In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef, en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig dag genoem en die donker het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was oggend – dag een. God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. God het die gewelf hemel genoem. En dit was aand en dit was oggend – 'n tweede dag. God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. En dit was aand en dit was oggend – 'n derde dag. God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur. God het die twee groot ligte gemaak, die groot lig om te heers oor die dag, en die klein lig om te heers oor die nag, en ook die sterre. God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is. En dit was aand en dit was oggend – 'n vierde dag. God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.” En dit was aand en dit was oggend – 'n vyfde dag. God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur. God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard, die mak diere volgens elkeen se aard, en al die diere wat op die grond kruip volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die hele aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur. God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed. En dit was aand en dit was oggend – die sesde dag. So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met sy werk wat Hy gedoen het; en Hy het op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. God het die sewende dag geseën; Hy het dit heilig verklaar, want op dié dag het Hy gerus van al sy werk – dit wat God geskep het deur dit te maak. Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die Here God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die Here God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword. Die Here God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die Here God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad. 'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat. Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Die Here God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” Toe vorm die Here God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie. Die Here God het toe die mens in 'n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. Die Here God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot 'n vrou, en haar na die mens gebring. Toe sê die mens: “Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees uit my eie vlees. Hierdie een sal vrou genoem word, want uit die man is sy geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word. Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie. Die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. Hy het vir die vrou gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” Die vrou het die slang geantwoord: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar oor die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê, ‘Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanraak nie, anders sterf julle.’ ” Die slang sê toe vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.” Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit 'n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om 'n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. Al twee se oë het oopgegaan en hulle het besef dat hulle naak is. Hulle het vyeblare aaneengeryg en vir hulle lendeskorte gemaak. Hulle hoor toe die geluid van die Here God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte. Die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Hy het geantwoord: “Ek het U in die tuin hoor beweeg, en ek was bang, want ek is naak; toe het ek weggekruip.” Hy vra toe: “Wie het vir jou vertel dat jy naak is? Het jy van die boom geëet waaroor Ek jou beveel het dat jy nie daarvan mag eet nie?” Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U gegee het om aan my sy te wees, sy is die een wat vir my van die boom gegee het, en ek het geëet.” Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” Die vrou het geantwoord: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.” Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die mak diere en al die diere van die veld; op jou pens sal jy seil, en stof sal jy eet, solank jy leef. Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.” Vir die vrou het Hy gesê: “Ek sal jou swaarkry met jou swangerskap baie erger maak; met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jou begeerte wees, maar hy sal oor jou heers.” Vir die mens het Hy gesê: “Omdat jy geluister het na jou vrou se stem, en geëet het van die boom waarvan Ek jou beveel het, ‘Jy mag nie daarvan eet nie!’ is die grond deur jou toedoen vervloek. Met swaarkry sal jy daarvan eet, solank jy leef; dorings en dissels sal dit vir jou laat uitspruit, en jy sal veldplante eet. Met sweet aan jou gesig sal jy brood eet, totdat jy terugkeer na die grond; want daaruit is jy geneem – ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Die mens het sy vrou “Eva” genoem, want sy is die een wat die moeder geword het van almal wat lewe. Die Here God het daarna vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek. Toe sê die Here God: “Kyk, die mens het soos een van Ons geword deur goed en kwaad te ken. Nou moet hy net nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en vir altyd bly lewe nie. ” Die Here God het hom toe weggestuur uit die tuin van Eden om die grond waaruit hy geneem is, te gaan bewerk. Hy het die mens uitgedryf en aan die oostekant van die tuin van Eden gerubs laat woon, met 'n flikkerende swaard wat heen en weer beweeg, om die pad na die boom van die lewe te bewaak. Die mens het met Eva, sy vrou, gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Kain geboorte gegee. Sy het gesê: “Ek het van die Here 'n man verkry. ” Sy het weer geboorte gegee – aan sy broer, aan Abel. Abel was 'n herder van kleinvee, en Kain 'n landbouer. Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond 'n offer vir die Here gebring. En Abel, ook hy het 'n offer gebring uit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vet. Die Here het Abel en sy offer met guns beskou. Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. Die Here vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is Abel, jou broer?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” Die Here het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.” Kain het vir die Here gesê: “My straf is te swaar om te dra. Kyk, U verdryf my vandag van die grond af, en vir U sal ek moet wegkruip. Ek sal 'n doellose swerwer word op die aarde, en elkeen wat my teëkom, sal my doodmaak.” Maar die Here het hom geantwoord: “Goed dan, enige een wat Kain doodmaak – dit sal sewe maal gewreek word.” Die Here het toe op Kain 'n merkteken gesit, sodat niemand wat hom teëkom, hom sou doodslaan nie. Kain het toe uit die Here se teenwoordigheid weggegaan en in die land Nod gaan woon, oos van Eden. Kain het met sy vrou gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Henog geboorte gegee. Kain was toe besig om 'n stad te bou, en hy het die stad na sy seun Henog vernoem. Vir Henog is Irad gebore; Irad het Megujael verwek, Megujael het Metusael verwek, en Metusael het Lameg verwek. Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die een se naam was Ada, en die tweede se naam was Silla. Ada het aan Jabal geboorte gegee. Hy was die voorvader van hulle wat in tente woon by hulle vee. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van almal wat op liere en fluite speel. En Silla, ook sy het geboorte gegee – aan Tubal-Kain, 'n smid en die voorvader van almal wat brons en yster bewerk. Tubal-Kain se suster was Naäma. Lameg het vir sy vroue gesê: “Ada en Silla, luister na my stem! Vroue van Lameg, hoor wat ek sê, want vir 'n wond aan my maak ek 'n man dood, 'n jong man vir 'n kneusplek aan my! Ja, sewe maal word Kain gewreek, maar Lameg sewe-en-sewentig maal.” Adam het weer gemeenskap gehad met sy vrou, en sy het aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “vir my het God 'n ander nasaat voorsien in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgemaak het.” En vir Set, ook vir hom is 'n seun gebore. Hy het hom Enos genoem. In daardie tyd het hulle begin om die Naam van die Here aan te roep. Hier volg 'n lys met die familiegeskiedenis van Adam: Die dag toe God Adam geskep het, het Hy hom as afbeelding van God gemaak. Manlik en vroulik het Hy hulle geskep. Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem, die dag toe Hy hulle geskep het. Toe Adam 130 jaar oud was, het hy 'n seun verwek wat 'n afbeelding, 'n beeld van hom was. Hy het hom Set genoem. Die lewensdae van Adam was ná Set se geboorte nog 800 jaar, en hy het seuns en dogters verwek. Adam het altesaam 930 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Set 105 jaar oud was, het hy Enos verwek. Nadat hy Enos verwek het, het Set nog 807 jaar lank geleef; en hy het seuns en dogters verwek. Set het altesaam 912 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Enos 90 jaar oud was, het hy Kenan verwek. Nadat hy Kenan verwek het, het Enos nog 815 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Enos het altesaam 905 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Kenan 70 jaar oud was, het hy Mahalalel verwek. Nadat hy Mahalalel verwek het, het Kenan nog 840 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Kenan het altesaam 910 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Mahalalel 65 jaar oud was, het hy Jered verwek. Nadat hy Jered verwek het, het Mahalalel nog 830 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Mahalalel het altesaam 895 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Jered 162 jaar oud was, het hy Henog verwek. Nadat hy Henog verwek het, het Jered nog 800 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Jered het altesaam 962 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Henog 65 jaar oud was, het hy Metusalag verwek. Nadat hy Metusalag verwek het, het Henog driehonderd jaar lank naby God geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Henog het altesaam 365 jaar lank geleef. Henog het naby God geleef, en hy was nie meer daar nie, want God het hom weggeneem. Toe Metusalag 187 jaar oud was, het hy Lameg verwek. Nadat hy Lameg verwek het, het Metusalag nog 782 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Metusalag het altesaam 969 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Lameg 182 jaar oud was, het hy 'n seun verwek. Hy het hom Noag genoem en gesê: “Hierdie een sal ons troos oor ons werk en die geswoeg met ons hande, oor die grond wat die Here vervloek het. ” Nadat Lameg Noag verwek het, het hy nog 595 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Lameg het altesaam 777 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Noag 500 jaar oud was, het hy Sem, Gam en Jafet verwek. Toe die mense meer begin word oor die hele aarde en daar dogters vir hulle gebore is, het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was. Hulle het toe vir hulle vroue geneem, wie hulle ook al verkies het. Die Here het toe gesê: “My gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees.” Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne. Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, was die Here jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief. Toe sê die Here: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.” Maar Noag het guns gevind in die oë van die Here. Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was 'n •regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was deur en deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. God het gekyk na die aarde, en kyk, dit was deur en deur sleg; want alle mense het 'n verderflike pad geloop op die aarde. God het vir Noag gesê: “Die einde van alle mense het, volgens my besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet die ark maak met verskillende ruimtes en dit van binne en van buite met pik bestryk. Dit is hoe jy dit moet maak: die lengte van die ark driehonderd •el, sy breedte vyftig el en sy hoogte dertig el. 'n Dak moet jy vir die ark maak – een el vanaf die boonste rand moet jy dit afrond. Die opening van die ark moet jy aan die sykant insit. 'n Onderste, middelste en derde verdieping moet jy maak. En Ek, kyk, Ek gaan vloedwaters oor die aarde bring om alle vlees waarin die asem van lewe is onder die hemel te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal omkom. Maar met jou sluit Ek my verbond. Jy sal in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. Van alles wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk na die ark bring om hulle saam met jou aan die lewe te hou. Manlik en vroulik moet hulle wees. Van elke soort voël, van elke soort dier, van elke soort kruipende dier op die grond, sal twee van elk na jou toe kom om aan die lewe te bly. En jy, neem van elke soort kos wat geëet word, en bring dit bymekaar by jou. Dit moet vir jou en vir hulle as kos dien.” Noag het dit toe gedoen. Net soos wat God hom beveel het, so het hy gemaak. Die Here het toe vir Noag gesê: “Gaan jy en jou hele gesin in die ark in; want in hierdie geslag het Ek net jou voor My regverdig bevind. Van al die rein diere moet jy vir jou sewe plus sewe neem – telkens 'n manlike een en sy maat; maar van die diere wat nie rein is nie, net twee – 'n manlike een en sy maat; ook van die voëls van die hemel sewe plus sewe, manlik en vroulik, om 'n nageslag lewend te hou oor die hele aarde. Want nog net sewe dae, dan gaan Ek dit laat reën oor die aarde veertig dae en veertig nagte lank. Ek sal alles wat bestaan, wat Ek gemaak het, van die aardbodem af uitwis.” Noag het toe gedoen net soos wat die Here hom beveel het. Noag was seshonderd jaar oud toe die vloed, die waters, oor die aarde gekom het. Maar Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom, het die ark binnegegaan voor die waters van die vloed. Van die rein diere en die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en alles wat op die grond kruip, het twee-twee die ark binnegegaan na Noag toe, manlik en vroulik, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae het die waters van die vloed oor die aarde gekom. In die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot •oerwater oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. Daar was stortreën op die aarde, veertig dae en veertig nagte lank. Op daardie selfde dag het Noag, Noag se seuns Sem, Gam en Jafet, en Noag se vrou en sy drie seuns se vroue saam met hulle, die ark binnegegaan, hulle en al die soorte wilde en al die soorte mak diere, al die soorte kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg, en al die soorte voëls – al die voëls, al die gevleueldes. Hulle het na Noag toe die ark binnegegaan, twee-twee van alle diere waarin die asem van lewe was. Dié wat ingegaan het, as manlik en vroulik uit alle diere het hulle ingegaan, soos God hom beveel het. Die Here het die ingang agter hom gesluit. Die vloed was veertig dae lank oor die aarde. Die water het meer geword, en dit het die ark opgelig, sodat dit hoog bo die grond was. Die water het die oorhand gekry en geweldig vermeerder oor die aarde. Die ark het op die oppervlakte van die water rondgedryf. Die water het heeltemal die oorhand gekry oor die aarde. Al die hoë berge onder die ganse hemel is bedek. Vyftien el bo hulle het die water gestyg, sodat die berge bedek was. Alle diere wat rondbeweeg op die aarde het omgekom – voëls, mak diere, wilde diere, al die diere wat op die aarde wemel, en ook al die mense. Alles wat lewensasem in hulle neuse gehad het, alles wat op droë grond was, het gesterf. Hy het alles wat bestaan, wat op die aardbodem was, uitgewis, mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is op die aarde uitgewis. Net Noag en dié wat saam met hom in die ark was, het oorgebly. Die water het honderd-en-vyftig dae lank die oorhand oor die aarde gehad. God het aan Noag gedink, ook aan al die wilde en mak diere wat saam met hom in die ark was. Toe het God 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het tot rus gekom. Die fonteine van die •oerwater en die vensters van die hemel is gesluit, en die stortreën uit die hemel is teruggehou. Die water het geleidelik van die aarde af teruggevloei. Die water het ná verloop van honderd-en-vyftig dae minder geword. In die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, het die ark op die Araratberge tot rus gekom. Die water het geleidelik minder geword, tot in die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste dag van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword. Ná verloop van veertig dae het Noag die ark se luik wat hy gemaak het, oopgemaak, en 'n kraai losgelaat. Maar dié het heen en weer bly vlieg totdat die water van die aarde af weggedroog het. Toe het Noag 'n duif wat by hom was, losgelaat om te sien of die water oor die aardbodem verminder het. Die duif kon nêrens 'n rusplek vir sy pote kry nie, en het na hom teruggekeer in die ark. Daar was immers nog water oor die hele oppervlakte van die aarde. Hy het sy hand uitgesteek, die duif gevang en by hom in die ark ingeneem. Hy het daarna nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark losgelaat. Die duif het teen laatmiddag na hom teruggekeer; en kyk, daar was 'n vars olyfblaar in sy bek! Noag het toe geweet dat die water oor die aarde verminder het. Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar die duif het nie weer na hom teruggekeer nie. In die seshonderd-en-eerste jaar van Noag se lewe, op die eerste dag van die eerste maand, was die water van die aarde af weggedroog. Noag het die deksel van die ark verwyder en gesien: Kyk, die grondoppervlak was droog! In die tweede maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand, was die aarde droog. God het toe met Noag gepraat: “Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou. Al die diere wat by jou is, van elke soort – voëls, mak diere, al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg – laat hulle saam met jou uitgaan, dat hulle op die aarde kan rondbeweeg en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.” Noag het toe uitgegaan, en sy seuns, sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom. Al die diere, al die kruipende diere en al die voëls, alles wat rondbeweeg op die aarde, het volgens hulle soorte uit die ark uitgegaan. Noag het 'n altaar vir die Here gebou en van al die rein diere en rein voëls geneem en op die altaar •brandoffers gebring. Die Here het die geurige offer geruik, en die Here het in sy hart gesê: “Ek sal nooit weer die grond vervloek vanweë die mens nie, alhoewel die mens se hart van sy jeug af neig na wat boos is. Ek sal nooit weer alles wat lewe tref, soos Ek gedoen het nie. “Al die dae wat die aarde nog daar is, sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde. Ontsag vir julle en vrees vir julle sal al die wilde diere van die aarde, al die voëls van die hemel, alles wat op die grond rondkruip, en al die visse van die see, vervul. In julle hande is hulle oorgegee. Alles wat beweeg, wat leef – vir julle sal dit as voedsel dien. Soos die groen gewasse, gee Ek dit alles vir julle. Slegs vleis met sy lewe in, met sy bloed in, mag julle nie eet nie. Maar julle bloed, naamlik julle lewens, sal Ek eis: Van elke dier sal Ek dit eis; van die hand van die mens, die hand van een mens teenoor die ander, sal Ek die lewe van 'n mens eis. “ Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, deur die mens sal sy bloed vergiet word; want na die beeld van God het Hy die mens gemaak. “Julle dan, wees vrugbaar en vermeerder – wemel op die aarde en vermeerder daarop.” Toe sê God vir Noag en sy seuns by hom: “ En Ek, kyk, Ek sluit my verbond met julle en julle nageslag ná julle, en met alle lewende wesens wat by julle is – voëls, mak diere, al die wilde diere van die aarde by julle – met alles wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere op die aarde. Ek sluit my verbond met julle: Nooit weer sal alle vlees deur die waters van die vloed uitgeroei word nie; ja, daar sal nie weer 'n vloed wees om die aarde te verdelg nie.” God het gesê: “Dit is die verbondsteken wat Ek plaas tussen My en julle en al die lewende wesens by julle, vir toekomende geslagte: My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke laat saampak oor die aarde, en die boog verskyn in die wolke, sal Ek my verbond onthou wat daar is tussen My en julle en elke lewende wese, ja, alle vlees. Die waters sal nie weer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. Wanneer die boog in die wolke is, sal Ek dit sien, om so herinner te word aan die ewigdurende verbond tussen God en alle lewende wesens, alle vlees wat op die aarde is.” God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek gesluit het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.” Die seuns van Noag wat uit die ark gegaan het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die vader van Kanaän. Hierdie drie was die seuns van Noag, en uit hulle is die hele aarde bevolk. Noag, 'n man van die grond, was die eerste wat 'n wingerd geplant het. Hy het van die wyn gedrink, dronk geword en homself kaal uitgetrek in sy tent. Gam, die vader van Kanaän, het die naaktheid van sy vader gesien en dit buite vir sy twee broers gaan vertel. Sem en Jafet neem toe 'n oorkleed, hou dit oor hulle al twee se skouers, gaan agteruit die tent binne en bedek die naaktheid van hulle vader. Hulle gesigte was weggedraai, en die naaktheid van hulle vader het hulle nie gesien nie. Toe Noag uit sy roes wakker word en hy besef wat sy jongste seun aan hom gedoen het, het hy gesê: “Vervloek is Kanaän! Die laagste slaaf sal hy vir sy broers wees.” Hy het ook gesê: “Die Here, die God van Sem, moet geprys word! Kanaän moet Sem se slaaf wees. Mag God ruimte skep vir Jafet; mag hy woon in die tente van Sem, en mag Kanaän sy slaaf wees.” Ná die vloed het Noag nog driehonderd-en-vyftig jaar lank geleef. Noag het altesaam negehonderd-en-vyftig jaar lank geleef, en hy het gesterf. Hier volg die familiegeskiedenis van Noag se seuns, Sem, Gam en Jafet. Daar is vir hulle seuns gebore ná die vloed. Jafet se nageslag was Gomer en Magog, Madai, Jawan, Tubal, Meseg en Tiras. Gomer se nageslag was Askenas, Rifat en Togarma. Jawan se nageslag was Elisa, Tarsis, die Kittiërs en Dodaners – deur hulle is die eilande van die nasies bevolk, almal in hulle eie lande, elkeen met sy eie taal, volgens hulle grootfamilies, volgens hulle nasies. Gam se nageslag was Kus, Egipte, Put en Kanaän. Kus se nageslag was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabtega. Rama se nageslag was Skeba en Dedan. Kus het Nimrod verwek. Hy het begin om as 'n maghebber op aarde op te tree. Hy was 'n dapper jagter voor die Here. Daarom word daar gesê: “Soos Nimrod, 'n dapper jagter voor die Here. ” Die kern van sy ryk was Babel, Ereg, Akkad en Kalne in die land Sinar. Uit hierdie gebied het hy na Assur weggetrek en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou, en ook Resen, tussen Nineve en Kalag – dit is die groot stad. Egipte was die voorvader van die Ludeërs, die Anameërs, die Lehabeërs, die Naftugiete, en van die Patrosane en die Kaslugiete – uit wie die Filistyne voortgekom het – en van die Kaftorane. Kanaän het Sidon verwek, sy eersgeborene, en ook Het, en was die voorvader van die Jebusiete, die •Amoriete, die Girgasiete, die Hewiete, die Eregiete, die Siniete, die Arwadters, die Semariërs en die mense van Hamat. Daarna het die grootfamilies van die Kanaäniete versprei, sodat die grondgebied van die Kanaäniete gestrek het van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, en in die rigting van Sodom en Gomorra, Adma en Sebojim tot by Lesa. Dit was dan Gam se nageslag, volgens hulle grootfamilies, met hulle eie tale, in hulle eie lande, volgens hulle nasies. En vir Sem, die ouer broer van Jafet, ook vir hom is seuns gebore. Hy was die stamvader van die hele nageslag van Heber. Die nageslag van Sem was Elam, Assur, Arpagsad, Lud en Aram. Die nageslag van Aram was Us, Gul, Geter en Mas. Arpagsad het Selag verwek, en Selag het Heber verwek. Vir Heber is twee seuns gebore: die een se naam was Peleg, want in sy tyd het die aarde verdeeld geraak, en sy broer se naam was Joktan. Joktan het Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag, Hadoram, Usal, Dikla, Obal, Abimael, Seba, Ofir, Gawila en Jobab verwek. Hulle almal was die nageslag van Joktan, en hulle woongebied het gestrek van Mesa af in die rigting van Sefar, die heuwelland in die ooste. Dit was dan die nageslag van Sem volgens hulle grootfamilies, met hulle eie tale, in hulle eie lande, volgens hulle nasies. Dit was die grootfamilies van Noag se seuns volgens hulle familiegeskiedenis, volgens hulle nasies. Uit hulle het die nasies oor die aarde versprei ná die vloed. Die hele aarde het een taal gehad en dieselfde woorde. Met hulle trek na die ooste kom hulle toe af op 'n vallei in die land Sinar en gaan woon daar. Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons maak kleistene en bak dit hard.” Die kleistene word toe hulle boustene, en asfalt word hulle messelklei. Hulle sê toe: “Kom ons bou vir ons 'n stad en 'n toring met sy bopunt in die hemel, sodat ons vir onsself naam maak; anders versprei ons oor die hele aarde.” Maar die Here het afgedaal om na die stad en die toring te kyk wat die mensekinders bou. Die Here sê toe: “Kyk, dit is een volk, en hulle almal het een taal, en dit is maar die begin van wat hulle gaan doen. Nou sal niks van wat hulle beplan om te doen, vir hulle onmoontlik wees nie. Kom, laat Ons afgaan en hulle taal daar verwar, dat die een nie die ander se taal verstaan nie.” Die Here het hulle daarvandaan oor die hele aarde versprei, en hulle het opgehou om die stad te bou. Daarom word dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar. Daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde versprei. Hier volg die familiegeskiedenis van Sem: Sem was 100 jaar oud toe hy Arpagsad verwek het, twee jaar ná die vloed. Nadat hy Arpagsad verwek het, het Sem nog 500 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Arpagsad het vyf-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Selag verwek. Nadat hy Selag verwek het, het Arpagsad nog 403 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Selag het dertig jaar geleef, en toe het hy Heber verwek. Nadat hy Heber verwek het, het Selag nog 403 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Heber het vier-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Peleg verwek. Nadat hy Peleg verwek het, het Heber nog 430 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Peleg het dertig jaar geleef, en toe het hy Reü verwek. Nadat hy Reü verwek het, het Peleg nog 209 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Reü het twee-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Serug verwek. Nadat hy Serug verwek het, het Reü nog 207 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Serug het dertig jaar geleef, en toe het hy Nahor verwek. Nadat hy Nahor verwek het, het Serug nog 200 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Nahor het nege-en-twintig jaar geleef, en toe het hy Tera verwek. Nadat hy Tera verwek het, het Nahor nog 119 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Tera het sewentig jaar geleef. Hy het Abram, Nahor en Haran verwek. Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het Abram, Nahor en Haran verwek, en Haran het Lot verwek. Haran het in Ur van die Galdeërs, die land van sy familie, gesterf, terwyl sy vader Tera nog geleef het. Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka. Sy was 'n dogter van Haran; hy was die vader van Milka en Jiska. Sarai was onvrugbaar; sy het nie 'n kind gehad nie. Tera het sy seun Abram en sy kleinseun Lot, Haran se seun, asook sy skoondogter Sarai, die vrou van sy seun Abram, geneem, en hulle het saam met hom uit Ur van die Galdeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. Maar toe hulle by Haran kom, het hulle daar gebly. Tera het 205 jaar oud geword. Tera het in Haran gesterf. Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys. “ Ek sal jou 'n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak, sodat jy 'n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën, maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. ” Abram het gegaan, soos die Here vir hom gesê het, en Lot het saam met hom gegaan. Abram was vyf-en-sewentig jaar oud met sy vertrek uit Haran. Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem, ook al die besittings wat hulle bekom het, en al die mense wat hulle in Haran verkry het. Hulle het vertrek om na die land Kanaän te gaan en het in die land Kanaän aangekom. Abram het deur die land getrek tot by die plek Sigem, tot by die akkerboom van Morê. Die Kanaäniete was toe in die land. Die Here verskyn toe aan Abram en sê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Hy het toe daar 'n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. Hy het daarvandaan verder getrek na die heuwelland oos van Bet-El, en sy tente opgeslaan tussen Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy vir die Here 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Toe het Abram algaande verder getrek in die rigting van die Negev. Toe kom daar 'n hongersnood in die land, en Abram het na Egipte afgetrek om daar as •vreemdeling te woon, want die hongersnood was swaar in die land. Toe hulle op die punt was om Egipte binne te gaan, sê Abram vir Sarai, sy vrou: “Kyk, ek weet dat jy 'n beeldskone vrou is. En dit gaan gebeur dat, as die Egiptenare jou sien, hulle sal sê, ‘Dit is sy vrou’; en hulle sal my doodmaak en jou laat leef. Sê tog jy is my suster, sodat dit met my goed kan gaan ter wille van jou, en ek aan die lewe kan bly ter wille van jou.” Toe Abram Egipte binnegaan, het die Egiptenare gesien dat die vrou besonder mooi was. Die •hoë amptenare van die farao het haar gesien en haar lof by die farao besing. Die vrou is toe na die paleis van die farao geneem. Hy het aan Abram goed gedoen ter wille van haar: Hy het kleinvee en beeste, donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele ontvang. Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai, die vrou van Abram. Die farao ontbied toe vir Abram en sê: “Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie vertel dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê, ‘Sy is my suster’, sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Hier is jou vrou dan nou; vat haar en gaan!” Die farao het manne opdragte gegee oor hom, en hulle het hom, sy vrou en al sy besittings uitgeleide gedoen. Abram het uit Egipte na die Negev opgetrek, hy en sy vrou met alles wat aan hom behoort, en Lot saam met hom. Abram was 'n baie vermoënde man met vee, silwer en goud. Hy het van staanplek tot staanplek uit die Negev getrek tot by Bet-El, tot by die plek waar sy tent vroeër tussen Bet-El en Ai gestaan het, die plek van die altaar wat hy voorheen daar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep. Ook Lot, wat saam met Abram getrek het, het kleinvee, beeste en tente gehad. Die land kon hulle nie meer dra, sodat hulle saam kon woon nie, want hulle besittings was te veel. Hulle kon net nie meer saam woon nie; en daar het 'n stryery ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot se veewagters. Die Kanaäniete en Feresiete het toe nog in die land gewoon. Abram sê toe vir Lot: “Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers. Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.” Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei. Abram het in die land Kanaän gewoon, en Lot het by die dorpe van die Jordaanstreek gaan woon; hy het sy tente tot by Sodom opgeslaan. Die manne van Sodom was baie sleg en sondig voor die Here. Die Here het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: “Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd. Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat, as iemand die stof van die aarde kan tel, ook jou nageslag getel sal kan word. Maak gereed, deurkruis die land in sy lengte en breedte, want aan jou gee Ek dit.” Abram het sy tente versit. Hy het by die akkerbome van Mamre, wat by Hebron is, aangekom en daar gewoon. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou. Dit gebeur toe in die dae van Amrafel, koning van Sinar, Arjog, koning van Ellasar, Kedorlaomer, koning van Elam, en Tidal, koning van Gojim, dat hulle oorlog voer teen Bera, koning van Sodom, Birsa, koning van Gomorra, Sinab, koning van Adma, Semeber, koning van Sebojim, en teen die koning van Bela – dit is Soar. Hulle het almal saam 'n bondgenootskap gevorm in die Siddimvallei, dit is by die Soutsee. Twaalf jaar lank het hulle Kedorlaomer gedien, maar in die dertiende jaar het hulle in opstand gekom. In die veertiende jaar het Kedorlaomer en die konings wat saam met hom was, toe gekom en die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Susiete in Ham, die Emiete in Sawe-Kirjatajim, en die Horiete in die berge van Seïr tot by El-Paran, wat aan die woestyn grens. Hulle het toe teruggedraai en by En-Mispat – dit is •Kades – gekom en die hele gebied van die Amalekiete verower, en selfs die •Amoriete wat in Gaseson-Tamar woon. Die koning van Sodom, die koning van Gomorra, die koning van Adma, die koning van Sebojim en die koning van Bela – dit is Soar – het uitgetrek en gevegslinies in die Siddimvallei opgestel teen hulle, teen Kedorlaomer, die koning van Elam, teen Tidal, die koning van Gojim, teen Amrafel, die koning van Sinar en teen Arjog, die koning van Ellasar – vier konings teen vyf. In die Siddimvallei was daar asfaltput op asfaltput. Die konings van Sodom en Gomorra het gevlug en daarin geval. Dié wat oorgebly het, het die berge in gevlug. Die oorwinnaars het al die besittings van Sodom en Gomorra en al hulle kos gevat en weggegaan. Hulle het Lot, die broerskind van Abram, en sy besittings gevat en weggegaan. Hy het toe in Sodom gewoon. Iemand wat ontkom het, het dit vir Abram, die Hebreër, vertel. Hy het gewoon by die akkerbome van die Amoriet, Mamre, die broer van Eskol en Aner. Hulle was bondgenote van Abram. Toe Abram hoor dat sy broer weggevoer is, het hy sy onderhoriges, hulle wat in sy huis gebore is, bewapen, driehonderd-en-agttien man, en die agtervolging volgehou tot by Dan. In die nag het hy en sy dienaars in verskillende groepe teen die konings verdeel en hulle aangeval. Hy het hulle agtervolg tot by Hoba, wat noord van Damaskus is. Hy het al die besittings teruggebring. Ook Lot, sy broer, het hy saam met sy besittings teruggebring, sowel as die vroue en die manskappe. Ná sy terugkeer, toe hy Kedorlaomer en die konings by hom verslaan het, het die koning van Sodom uitgetrek om hom te ontmoet in die Sawevallei – dit is die vallei van die konings. Melgisedek, die koning van Salem, het brood en wyn gebring. Hy was 'n priester van God, die Allerhoogste. Hy het Abram geseën en gesê: “Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, skepper van die hemel en die aarde. God, die Allerhoogste, moet geprys word, Hy wat jou teenstanders in jou hand oorgelewer het.” Abram het toe vir hom 'n tiende van alles gegee. Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee vir my die mense; die besittings kan jy vir jouself vat.” Maar Abram het vir die koning van Sodom gesê: “Ek hef my hand op na die Here God, die Allerhoogste, skepper van die hemel en die aarde: Nie die riempie of die bandjie van 'n sandaal sal ek vat van enigiets wat aan jou behoort nie, sodat jy nie kan sê, ‘Ek is die een wat Abram ryk gemaak het’ nie. Sluit my uit! Net wat die jong manne geëet het, en die deel van die manne wat saam met my gegaan het – Aner, Eskol en Mamre – laat hulle dan hulle deel kry.” Ná verloop van tyd het die woord van die Here tot Abram gekom in 'n visioen: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is 'n skild vir jou. Jou loon is baie groot.” Maar Abram het gesê: “ Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie 'n nageslag gegee nie. Kyk, 'n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.” Maar kyk, die woord van die Here kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken. Die Here het vir hom gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” Hy het gevra: “ Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” Toe sê die Here vir hom: “Bring vir My 'n drie jaar oud verskalf, 'n drie jaar oud bok, 'n drie jaar oud skaapram, 'n tortelduif en 'n jong duif.” Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder. Toe die son besig is om onder te gaan, het 'n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, 'n groot duisternis, hom. Die Here sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag •vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank. Maar ook die nasie vir wie hulle moet dien, gaan Ek oordeel. Daarna sal hulle uittrek met 'n menigte besittings. Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op 'n hoë ouderdom begrawe word. Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die •Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.” Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van 'n oond en die vuur van 'n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. Op daardie dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier – die gebied van die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, Hetiete, Feresiete, Refaïete, Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.” Sarai, Abram se vrou, het nie vir hom kinders in die wêreld gebring nie. Maar sy het 'n Egiptiese slavin gehad; haar naam was Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Kyk, die Here weerhou my daarvan om kinders te kry. Gaan maar na my slavin; miskien kan ek deur haar 'n familie opbou. ” Abram het ingestem tot Sarai se voorstel. Sarai, Abram se vrou, het toe haar Egiptiese slavin, Hagar, geneem en haar aan haar man Abram as vrou gegee. Dit was nadat Abram al tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het. Hy het by Hagar ingegaan en sy het swanger geword. Toe sy egter sien dat sy swanger is, was haar meesteres minderwaardig in haar oë. Sarai sê toe vir Abram: “Die onreg wat ek moet verduur, rus op jou. Ek self het my slavin in jou skoot gegee, maar toe sy sien dat sy swanger is, het ek minderwaardig geword in haar oë. Mag die Here oordeel tussen my en jou.” Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die Here het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die Here vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die Here het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” Die Engel van die Here het ook vir haar gesê: “Kyk, jy is swanger en sal aan 'n seun geboorte gee. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het van jou mishandeling gehoor. En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! In onvrede met al sy broers sal hy woon.” Hagar het toe die Naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. Abram was ses-en-tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram in die wêreld gebring het. Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.” Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat: “Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van 'n menigte nasies word. Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van 'n menigte nasies maak Ek jou. Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom. Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle 'n God wees.” God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen. En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle. Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook 'n kind uit die huishouding, en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie. 'n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as 'n ewige verbond. 'n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.” God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara wees. Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou 'n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.” Abraham het neergeval met sy gesig teen die grond, maar hy het gelag en in sy hart gesê: “Kan daar vir 'n honderdjarige 'n kind gebore word? Of sal Sara, 'n negentigjarige, kan geboorte skenk?” Toe sê Abraham vir God: “As Ismael maar net voor U kan leef!” Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom. Wat Ismael betref: Ek het jou verhoor. Kyk, Ek sal hom seën, hom vrugbaar maak en hom buitengewoon talryk maak. Twaalf leiers sal hy verwek, en Ek sal hom 'n groot nasie maak. Maar my verbond sal Ek handhaaf met Isak, wat Sara teen hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.” Nadat Hy klaar met hom gepraat het, het God opgevaar, weg van Abraham af. Abraham het sy seun Ismael geneem, ook al die kinders uit sy huishouding en almal wat met sy geld gekoop is, elke manlike persoon onder die mense van Abraham se huishouding, en hy het die vlees van hulle voorhuide besny – nog daardie selfde dag, soos God vir hom gesê het. Abraham was nege-en-negentig jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid, en sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid. Op dieselfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny, en ook al die manne van sy huishouding, die kinders uit sy huishouding en dié wat met geld gekoop is van vreemdes. Hulle is saam met hom besny. Die Here het aan Abraham verskyn by die akkerbome van Mamre terwyl hy op die hitte van die dag by die ingang van sy tent sit. Toe hy opkyk, sien hy skielik drie mans naby hom staan. Toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig laag teen die grond. Hy sê toe: “My heer, as ek guns vind in u oë, moet dan asseblief nie by u dienaar verbygaan nie. Laat daar 'n bietjie water gehaal word; en was u voete. Maak u dan gemaklik onder die boom. Laat ek 'n stukkie brood bring, en versterk u innerlike, waarna u verder kan gaan; want juis daarom het u by u dienaar langs gekom.” Hulle het geantwoord: “Maak gerus soos u sê.” Abraham gaan toe haastig in die tent in na Sara toe en sê: “Neem gou drie sea meel, gesifte meel; knie dit en bak roosterkoeke!” Daarna hardloop Abraham na die beeste, neem 'n jong bulkalf, met sagte, goeie vleis, en gee dit vir sy dienaar, en hy het dit gou voorberei. Hy neem toe botter, melk en die bulkalf wat voorberei is, en sit dit aan hulle voor. Terwyl hy by hulle onder die boom staan, het hulle geëet. Hulle het vir hom gevra: “Waar is Sara, jou vrou?” Hy het geantwoord: “Daar in die tent.” Toe sê een: “Ek sal beslis na jou terugkom wanneer die seisoen draai. Kyk, Sara, jou vrou, sal dan 'n seun hê.” Sara het gestaan en luister by die ingang van die tent, wat agter hom was. Abraham en Sara was al oud, gevorderd in jare. Vir Sara het wat maandeliks met vroue gebeur, reeds opgehou. Sy het in haar binneste gelag en gedink: “Kan ek nog seksuele begeertes hê, noudat ek al afgetakel en my man oud is?” Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ Is enigiets te wonderbaarlik vir die Here? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara 'n seun hê.” Sara het dit egter ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie,” want sy was bang. Hy het gesê: “Nee, maar jy hét gelag.” Die manne het daar opgestaan en afgekyk in die rigting van Sodom. Abraham het saam met hulle gestap om hulle weg te sien. Die Here het gesê: “Sal Ek vir Abraham geheim hou wat Ek gaan doen, terwyl Abraham beslis 'n groot en magtige nasie gaan word, en al die nasies van die aarde deur hom geseënd sal wees? Want Ek het hom gekies, sodat hy opdragte kan gee aan sy kinders en sy huishouding ná hom, en hulle dan by die pad van die Here kan hou deur te doen wat reg en billik is, sodat die Here met Abraham kan laat gebeur wat Hy aan hom beloof het.” Die Here sê toe: “Die hulpgeroep oor Sodom en Gomorra is werklik groot, en hulle sonde is werklik uitermate swaar. Ek wil afgaan en kyk of wat hulle gedoen het, volledig ooreenstem met die noodkreet oor die stad wat tot My gekom het, en indien nie, dan wil Ek dit weet.” Die manne het daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan. Maar Abraham het nog voor die Here bly staan. Abraham gaan toe nader en vra: “Gaan U werklik •regverdiges saam met goddeloses verdelg? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad; sal U nogtans die stad verdelg en nie die plek vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? U sal tog nooit so iets doen nie – om regverdiges saam met goddeloses te laat sterf, asof regverdiges soos goddeloses is! U sal tog nooit! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Die Here het Abraham geantwoord: “As Ek in Sodom, in die stad, vyftig regverdiges vind, sal Ek die hele plek vergewe ter wille van hulle.” Abraham antwoord toe en sê: “Kyk, ek het my verstout om met my Heer te praat, terwyl ek stof en as is. Dalk ontbreek vyf van die vyftig regverdiges. Sal U net oor vyf die hele stad verdelg?” Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie verdelg as Ek daar vyf-en-veertig regverdiges vind nie.” Abraham het toe voortgegaan om met die Here te praat; hy het gesê: “Miskien word daar veertig gevind?” Die Here het geantwoord: “Ter wille van die veertig sal Ek dit nie doen nie.” Daarop sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog praat; dalk word daar dertig gevind.” Die Here het gesê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar vind nie.” Abraham sê toe: “Kyk, ek het dit gewaag om met my Heer te praat. Dalk word daar twintig gevind?” Hy het geantwoord: “Ter wille van twintig sal Ek die stad nie verdelg nie.” Toe sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog net dié keer praat. Dalk word daar tien gevind.” Die Here het gesê: “Ter wille van die tien sal Ek dit nie verdelg nie.” Die Here het weggegaan toe Hy klaar met Abraham gepraat het. En Abraham het teruggegaan na sy woonplek. Die twee engele het teen die aand in Sodom aangekom terwyl Lot in die stadspoort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, staan hy op, gaan hulle tegemoet en buig laag met sy gesig na die grond. Hy sê toe: “Ag, menere, draai asseblief af na die huis van u dienaar, bly die nag oor en was u voete! U kan vroeg opstaan en op u pad gaan.” Maar hulle het gesê: “Nee, ons sal hier in die oop ruimte oornag.” Hy het egter ernstig by hulle daarop aangedring, en hulle het na hom afgedraai en by sy huis aangekom. Hy het vir hulle 'n maaltyd voorberei en ongesuurde brode gebak, en hulle het geëet. Voordat hulle gaan slaap, kom die manne van die stad, die manne van Sodom, van oral oor na die huis, jonk en oud, al die mense, sonder uitsondering. Hulle roep toe na Lot en sê vir hom: “Waar is die mans wat vannag by jou aangekom het? Bring hulle uit na ons toe, sodat ons met hulle gemeenskap kan hê!” Lot het na hulle uitgegaan, na die ingang, en die deur agter hom toegemaak. Hy het gesê: “My broers, moet asseblief nie iets slegs doen nie! Kyk, ek het twee dogters wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle liewer na julle uitbring. Maak dan met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie mans moet julle nie iets doen nie, want juis daarom het hulle onder die skadu van my dak ingekom.” Maar hulle het gesê: “Gee pad daar!” Verder sê hulle: “Hierdie man het gekom om as •vreemdeling hier te woon, en hy wil sowaar 'n oordeel vel! Nou sal ons jou meer kwaad aandoen as vir hulle!” Hulle het heftig aangedring by die man, by Lot, en nader beweeg om die deur af te breek. Maar die mans het hulle hande uitgesteek, Lot na hulle toe ingetrek en die deur gesluit. Hulle het ook die mans wat by die ingang van die huis was, van klein tot groot, met blindheid geslaan. Die mans het toe maar opgegee om die deur te probeer vind. Die mans vra toe vir Lot: “Wie van jou mense is nog hier in die stad – 'n skoonseun, jou seuns, jou dogters, of enige iemand van jou? Neem hulle uit hierdie plek, want ons gaan hierdie plek verdelg. Ja, die noodkreet teen hulle by die Here is groot, en die Here het ons gestuur om die stad te verdelg.” Lot het uitgegaan en met sy skoonseuns, wat sy dogters as vrou sou neem, gepraat. Hy het gesê: “Maak gereed en gaan uit hierdie plek uit! Want die Here gaan die stad verdelg.” Maar in sy skoonseuns se oë was dit asof hy gekskeer. Net toe die dag breek, het die engele Lot aangespoor: “Staan op! Neem jou vrou en jou twee dogters wat hier is, anders word julle meegesleur oor die sondeskuld van die stad.” Hy het nog gehuiwer, toe gryp die mans hom, sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here Hom oor hom ontferm het. Hulle het hom uitgelei en buite die stad gelaat. Net nadat hulle hulle na buite uitgelei het, sê een van die mans: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moet nêrens in die hele Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die berge, anders word jy meegesleur.” Maar Lot het vir hulle gesê: “Asseblief nie, my Heer! Kyk, u dienskneg het guns gevind in u oë, en U het u troue liefde oorvloedig aan my bewys deur my te laat leef. Ek sal egter nie na die berge kan ontvlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterf nie. Kyk, hierdie dorp is naby genoeg om daarheen te kan vlug, en dit is 'n klein dorpie. Ek wil graag daarheen ontvlug; dit is mos maar klein; dan kan ek my lewe behou.” Hy het hom geantwoord: “Kyk, Ek sal jou ook in hierdie saak tegemoetkom deur nie die dorp waarvan jy praat, te verwoes nie. Vlug vinnig daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie.” Daarom word die dorp Soar genoem. Die son het oor die aarde opgekom toe Lot in Soar aankom. Die Here het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die Here af uit die hemelruim kom. Hy het hierdie stede verwoes en die hele Jordaanstreek – al die inwoners van die stede en ook wat uit die grond spruit. Sy vrou het egter omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword. Abraham is vroeg die oggend na die plek waar hy voor die Here gestaan het. Hy het afgekyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele gebied van die Jordaanstreek, en gesien daar styg rook op uit die land, soos die rook uit 'n smeltoond. Toe God die stede van die Jordaanstreek verdelg het, het God aan Abraham gedink, en Lot weggestuur uit die verwoesting, toe Hy die stede waarin Lot gewoon het, verwoes het. Lot het uit Soar opgetrek en in die bergland gaan woon. Sy twee dogters was saam met hom, want hy was bang om in Soar te bly. Hy het hom in 'n grot gevestig, hy en sy twee dogters. Die oudste dogter sê toe vir die jonger een: “Ons pa is al oud, en in dié land is daar nie 'n man wat by ons kan ingaan, soos dit die gebruik in die hele wêreld is nie. Kom ons laat ons pa wyn drink, sodat ons by hom kan gaan lê, en ons uit ons pa 'n nageslag in die lewe kan bring.” Daardie nag het hulle hulle vader wyn laat drink; en die oudste het ingegaan en by haar vader gaan lê. Hy het nie iets agtergekom toe sy gaan lê en opstaan nie. Die volgende dag sê die oudste toe vir die jongste: “Kyk, ek het verlede nag by ons pa geslaap. Kom ons gee hom ook vannag wyn; gaan jy dan in en lê by hom, sodat ons uit ons pa 'n nageslag in die lewe kan bring.” Hulle het toe ook daardie nag hulle vader wyn laat drink, en die jongste het opgestaan en by hom gaan lê. Hy het nie iets agtergekom toe sy gaan lê en opstaan nie. So het die twee dogters van Lot swanger geraak by hulle vader. Die oudste het aan 'n seun geboorte gegee, en sy het hom Moab genoem. Hy is die stamvader van die huidige Moabiete. En die jongste, ook sy het aan 'n seun geboorte gegee en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die stamvader van die huidige Ammoniete. Abraham het daarvandaan na die gebied van die Negev getrek en tussen Kades en Sur gaan woon. Terwyl hy as •vreemdeling in Gerar gewoon het, het Abraham oor Sara, sy vrou, gesê: “Sy is my suster.” Abimeleg, die koning van Gerar, het Sara laat haal. Maar God het in 'n nagtelike droom na Abimeleg gekom en vir hom gesê: “Kyk, jy gaan sterf oor die vrou wat jy geneem het, want sy behoort aan 'n man.” Abimeleg het egter nog nie naby haar gekom nie, en vra toe: “My Heer, sal U dan selfs 'n regverdige nasie ombring? Het hy self dan nie vir my gesê, ‘Sy is my suster’ nie? En sy, ook sy het gesê, ‘Hy is my broer.’ Met 'n eerlike hart en met rein hande het ek hierdie ding gedoen.” God het vir hom in sy droom gesê: “Ook Ek weet dat jy hierdie ding met 'n eerlike hart gedoen het. En Ek het jou dan ook daarvan weerhou om teen My te sondig. Daarom het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie. Gee nou die man se vrou terug. Hy is immers 'n profeet, en hy sal vir jou bid, sodat jy kan bly leef. Maar as jy haar nie teruggee nie – weet dan dat jy beslis sal sterf, jy en almal wat aan jou behoort.” Abimeleg het vroeg die oggend opgestaan en al sy dienaars ontbied. Voor hulle ore het hy die hele gebeure oorvertel. Die manne het baie bang geword. Toe ontbied Abimeleg vir Abraham en vra vir hom: “Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek teen jou verkeerd gedoen dat jy oor my en my koninkryk so 'n groot skuld gebring het? Dinge wat nie moes gebeur nie, het jy my aangedoen.” Abimeleg het verder vir Abraham gevra: “Wat het jy voor oë gehad toe jy hierdie ding gedoen het?” Abraham het geantwoord: “Dit is omdat ek gedink het daar is beslis geen ontsag vir God op hierdie plek nie, en dat hulle my sal doodmaak oor my vrou. Bowendien, sy is inderdaad my suster, sy is die dogter van my vader, net nie die dogter van my moeder nie; en sy het my vrou geword. En toe God my laat rondswerf het, weg van my familie, het ek vir haar gesê, ‘Dit is jou trou wat jy aan my moet bewys; op elke plek waar ons kom, moet jy van my sê: “Hy is my broer.” ’ ” Abimeleg het kleinvee, beeste, slawe en slavinne geneem en dit vir Abraham gegee; en hy het Sara, sy vrou, aan hom terugbesorg. Abimeleg het gesê: “Kyk, my land lê oop voor jou. Woon waar ook al dit goed is in jou oë.” Vir Sara het hy gesê: “Kyk, ek gee vir jou broer duisend silwerstukke. Kyk, dit is 'n teken van jou eerbaarheid vir almal wat by jou is. By almal is jy geregverdig.” Abraham het toe tot God gebid, en God het Abimeleg genees, ook sy vrou en sy slavinne, en hulle kon weer kinders kry; want die Here het elke moederskoot in Abimeleg se huis volkome gesluit oor Sara, Abraham se vrou. Die Here het na Sara omgesien soos Hy gesê het, en die Here het aan haar gedoen soos Hy beloof het. Sara het swanger geword en vir Abraham op sy oudag 'n seun in die wêreld gebring. Dit was op die bestemde tyd, soos God hom beloof het. Abraham het die seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom in die wêreld gebring het, Isak genoem. Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het. Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom in die wêreld gebring is. Sara het gesê: “'n Lag het God vir my beskik. Elkeen wat dit hoor, sal my toelag.” Verder sê sy: “Wie sou vir Abraham kon aankondig, ‘Sara laat kinders aan haar drink’? Want ek het vir hom op sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.” Die kind het gegroei en is gespeen. Abraham het op die dag toe Isak gespeen is, 'n groot feesmaal gehou. Sara sien toe dat Hagar, die Egiptiese vrou, se seun, wat sy vir Abraham in die wêreld gebring het, spottend lag. Sy het vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun, saam met Isak, erf nie.” Maar die saak was heeltemal verkeerd in Abraham se oë, omdat dit sy seun was. God het egter vir Abraham gesê: “Laat die saak van die seun en jou slavin nie verkeerd wees in jou oë nie. Alles wat Sara vir jou sê – luister na haar! Want daar sal na jou nageslag met die naam van Isak verwys word. Maar ook die seun van die slavin sal Ek tot 'n nasie maak, omdat hy jou nageslag is.” Abraham het die môre vroeg opgestaan. Hy neem toe brood en 'n sak water, en gee dit vir Hagar. Hy het dit op haar skouer gesit en ook die kind, en haar toe weggestuur. Sy het vertrek, en in die woestyn van Berseba rondgedwaal. Toe die water in die sak opraak, het sy die kind onder een van die struike neergesit. Sy loop toe en gaan sit aan die ander kant, so ver weg as wat mens met 'n pyl kan skiet, want sy het gedink: “Ek wil nie die dood van die kind aanskou nie.” Terwyl sy so daar sit, het sy hardop begin huil. God het die seun se gehuil gehoor. Toe roep die •Engel van God na Hagar uit die hemel en vra vir haar: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die gehuil van die seun, daar waar hy is, gehoor. Staan op, tel die seun op en hou hom styf vas, want tot 'n groot nasie wil Ek hom maak.” God maak toe haar oë oop, en sy sien 'n put! Sy loop toe, maak die watersak vol en laat die seun drink. God was met die seun, en hy het opgegroei. Hy het in die woestyn gewoon, en hy het 'n boogskutter geword. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem. In daardie tyd het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, vir Abraham gesê: “God is met jou in alles wat jy doen. Daarom, sweer hier vir my by God dat jy my, my kinders en my nageslag nie sal bedrieg nie. In ooreenstemming met die trou wat ek aan jou bewys het, moet jy ook aan my en aan die land waarin jy as •vreemdeling woon, trou bewys.” Abraham het gesê: “Ek sweer.” Maar Abraham het Abimeleg tereggewys oor 'n put waarop Abimeleg se dienaars beslag gelê het. Abimeleg het geantwoord: “Ek weet nie wie so iets sou doen nie. Jy het my nie daaroor ingelig nie, en ook het ek nie daarvan gehoor nie, tot vandag toe nie.” Abraham het toe kleinvee en beeste geneem en dit vir Abimeleg gegee, en hulle twee het 'n verdrag gesluit. Abraham het egter sewe ooilammers uit die kleinvee eenkant gehou. Abimeleg vra toe vir Abraham: “Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy eenkant hou?” Hy het geantwoord: “Ek doen dit omdat jy sewe ooilammers uit my hand moet aanvaar, sodat dit vir my as getuienis kan dien dat ek hierdie put gegrawe het.” Daarom word daardie plek Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed afgelê. Nadat hulle by Berseba 'n verdrag gesluit het, het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, gereedgemaak en teruggekeer na die land van die Filistyne. Abraham het 'n tamarisk in Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die Ewige God, aangeroep. Abraham het 'n lang tyd as vreemdeling in die land van die Filistyne gewoon. Ná verloop van tyd het God Abraham op die proef gestel. “Abraham!” het Hy vir hom gesê; en hy het geantwoord: “Hier is ek.” Toe sê God: “Neem jou seun Isak, jou enigste, wat jy liefhet; gaan dan na die gebied van Moria, en offer hom daar as •brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys.” Abraham het vroeg die oggend sy donkie opgesaal, twee van sy dienaars met hom saamgeneem, en ook sy seun Isak. Hy het die hout vir 'n brandoffer gekloof, gereedgemaak en vertrek na die plek waaroor God met hom gepraat het. Op die derde dag het Abraham opgekyk en die plek in die verte gesien. Toe sê Abraham vir sy dienaars: “Bly julle hier met die donkie! Ek en die seun wil daarheen gaan. Ons wil aanbid en sal dan na julle terugkom.” Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak se skouer gesit; hy het die kole vuur en die mes gevat. So het hulle twee saam geloop. Isak sê toe vir Abraham, sy vader: “Pa!” En hy antwoord: “Ja, my seun?” Toe sê hy: “Hier is die kole vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer?” Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop. Toe hulle aankom by die plek wat God vir hom gewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou en die hout reggepak. Hy het sy seun, Isak, vasgebind en hom op die altaar neergelê, bo-op die hout. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. Maar die •Engel van die Here het na hom uit die hemel geroep en gesê: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie,” het Hy gesê, “en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.” Toe Abraham opkyk, sien hy: Daar is 'n enkele ram wat aan sy horings vasgevang is in 'n bos! Abraham gaan toe en neem die ram. Hy het hom as 'n brandoffer gebring in die plek van sy seun. Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word. ” Die Engel van die Here het daarna 'n tweede keer uit die hemel na Abraham geroep en gesê: “By Myself sweer Ek,” is die uitspraak van die Here, “omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou het nie, sal Ek jou ryklik seën, en jou nageslag so geweldig vermeerder soos die sterre aan die hemelruim en soos die sand wat langs die seestrand is. Jou nageslag sal die stadspoorte van hulle vyande in besit neem. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.” Abraham het toe teruggekeer na sy dienaars, en hulle het opgestaan en saam met hom na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba bly woon. Ná hierdie gebeure het Abraham berig ontvang: “Kyk, ook Milka het seuns in die wêreld gebring vir jou broer Nahor: Us, sy eersgeborene, Bus, sy broer, en Kemuel, die vader van Aram, ook Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.” Betuel het Rebekka verwek. Hierdie agt seuns het Milka vir Nahor, Abraham se broer, in die wêreld gebring. Sy byvrou, wie se naam Reüma was, ook sy het kinders in die wêreld gebring: Tebag, Gagam, Tagas en Maäga. Sara het honderd sewe-en-twintig jaar lank geleef – dit was die lewensjare van Sara. Sara het gesterf in die land Kanaän by Kirjat-Arba, dit is Hebron. Abraham het by die tent ingegaan om oor Sara te rou en oor haar te huil. Toe het Abraham opgestaan van die plek by sy oorlede vrou. Hy het met die Hetiete gaan onderhandel en gesê: “Ek is 'n •vreemdeling en bywoner by julle; gee vir my 'n begraafplek as eiendom by julle, sodat ek my oorlede vrou kan begrawe en haar kan weglê. ” Die Hetiete het Abraham geantwoord deur vir hom te sê: “Luister na ons, meneer! U is 'n magtige leier in ons midde. Begrawe u oorlede vrou in die keur van ons grafte. Niemand onder ons sal u sy graf weier, om daar u oorlede vrou te begrawe nie.” Abraham het opgestaan, diep gebuig voor die mense van die land, die Hetiete, met hulle onderhandel en gesê: “As u daartoe instem dat ek my oorlede vrou begrawe en haar weglê, luister dan na my en doen vir my voorspraak by Efron, seun van Sogar, sodat hy die grot van Magpela wat aan hom behoort, en wat aan die rand van sy grond lê, vir my sal gee. Teen die volle koopprys moet hy dit vir my gee, sodat ek tussen u 'n begraafplek as eiendom kan besit.” Efron het daar tussen die Hetiete gesit. Efron, die Hetiet, het Abraham toe ten aanhore van die Hetiete, naamlik almal wat deur die dorpspoort ingaan, geantwoord: “Nee, meneer, luister na my! Die stuk grond gee ek vir u; en die grot wat daarop is – vir u gee ek dit. Voor die oë van my volksgenote gee ek dit vir u. Begrawe u oorlede vrou.” Abraham het toe weer diep gebuig voor die mense van die land, en ten aanhore van die mense van die land met Efron gepraat: “As u maar net asseblief na my sal luister! Ek betaal vir die grond. Aanvaar dit van my, sodat ek my oorlede vrou daar kan begrawe.” Efron het Abraham toe geantwoord deur vir hom te sê: “Meneer, luister na my! 'n Stuk grond van vierhonderd sikkel silwer, wat is dit nou tussen my en u? Begrawe u oorlede vrou!” Abraham het na Efron geluister. Abraham het vir Efron die silwer afgeweeg wat hy ten aanhore van die Hetiete genoem het: vierhonderd sikkel silwer, wat aanvaarbaar is by handelaars. So het die stuk grond van Efron wat in Magpela, oos van Mamre, is – die grond en die grot wat daarop is, en al die bome wat op die grond is, binne die hele grens reg rondom – oorgegaan na Abraham as gekoopte eiendom, ten aanskoue van die Hetiete, almal wat by die dorpspoort ingaan. Daarna het Abraham sy vrou Sara begrawe in die grot op die grond in Magpela, oos van Mamre – dit is Hebron – in die land Kanaän. Die grond en die grot daarop is aan Abraham oorgedra – 'n begraafplek as eiendom vanaf die Hetiete. Abraham was oud, gevorderd in jare. Die Here het Abraham in alle opsigte geseën. Abraham het vir sy slaaf, die oudste in sy huis, wat beheer gehad het oor alles wat aan hom behoort, gesê: “Plaas jou hand onder my heup, sodat ek jou 'n eed kan laat aflê by die Here, die God van die hemel, en die God van die aarde, dat jy nie vir my seun 'n vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se midde ek woon nie, maar dat jy na my land, na my familie, sal gaan en vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.” Die slaaf het vir hom gesê: “Miskien wil die vrou my nie volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugneem na die land waaruit u weggetrek het?” Maar Abraham het hom geantwoord: “Pasop dat jy nie my seun daarheen laat terugkeer nie! Die Here, die God van die hemel, wat my uit my ouerhuis en die land van my herkoms geneem het, en wat aan my 'n belofte gemaak en dit aan my met 'n eed bevestig het deur te sê, ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,’ Hy self sal sy engel voor jou uit stuur, en jy sal daar vir my seun 'n vrou gaan haal. As die vrou jou nie wil volg nie, is jy vry van hierdie eed teenoor my. My seun mag jy net nie daarheen terugneem nie.” Die slaaf het toe sy hand onder Abraham, sy heer, se heup geplaas en vir hom 'n eed afgelê oor hierdie saak. Die slaaf het tien van sy heer se kamele geneem en vertrek, met allerlei kosbaarhede van sy heer by hom. Hy het gereedgemaak en vertrek na Aram-Naharajim, na die dorp van Nahor. Hy het die kamele teen die aand buite die dorp by 'n put laat kniel, die tyd wanneer vroue uitgaan om water te skep. Hy het gesê: “ Here, God van my heer Abraham, laat dit asseblief vandag vir my gebeur, en bewys so troue liefde aan my heer Abraham. Kyk, ek staan by die waterbron, en die dogters van die dorp se mans kom uit om water te skep. Mag dit so gebeur: Die jong meisie vir wie ek sê, ‘Hou asseblief jou kruik skuins dat ek kan drink,’ en wat my dan antwoord, ‘Drink! En ook jou kamele sal ek laat drink’ – dit is sy wat U bestem het vir u dienskneg, vir Isak; en daaraan sal ek weet dat U aan my heer troue liefde bewys het.” Hy het nog nie eers klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka – gebore vir Betuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer – uit met haar kruik op haar skouer. Die jong meisie was beeldskoon, 'n maagd met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan na die fontein, haar kruik volgemaak en weer na bo gegaan. Die slaaf het haar tegemoet gehardloop en gesê: “Laat my asseblief 'n bietjie water drink uit jou kruik.” Sy het geantwoord: “Drink, meneer!” Sy het gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink. Toe sy hom klaar laat drink het, sê sy: “Ook vir u kamele sal ek water skep, totdat hulle klaar gedrink het.” Sy maak toe gou haar kruik in die drinkbak leeg en haas haar weer na die put om water te skep. Sy het vir al sy kamele water geskep. Die man het haar in stilte dopgehou om uit te vind of die Here sy reis goed laat afloop het of nie. Toe die kamele klaar gedrink het, haal die man 'n goue neusring uit, wat 'n beka weeg, en vir haar polse ook twee armbande waarvan die gewig tien sikkels goud was. Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê my asseblief! Is daar dalk in jou vader se huis vir ons plek om te oornag?” Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun van Milka, wat sy vir Nahor in die wêreld gebring het.” Sy het verder vir hom gesê: “Daar is by ons sowel strooi as baie voer, en ook plek om te oornag.” Die man het gekniel, voor die Here in aanbidding gebuig en gesê: “Die Here, die God van my heer Abraham, moet geprys word, Hy wat sy liefde en trou nie van my heer weerhou het nie. Wat my betref: Die Here het my gelei op die pad na die huisgesin van my heer se broer. ” Die jong meisie het toe gehardloop en by haar moeder se huis hierdie dinge gaan vertel. Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Laban het hom gehaas na die man daar buite by die fontein. Toe hy die neusring sien, en ook die armbande aan sy suster se polse, en hy die woorde hoor wat sy suster Rebekka sê, “So het die man met my gepraat,” gaan hy na die man toe. En kyk, hy staan toe nog daar by die kamele langs die fontein! Hy het vir hom gesê: “Kom in, geseënde van die Here! Waarom sal jy buite bly staan, terwyl ek self die huis en die plek vir die kamele gereedgemaak het?” Die man het die huis binnegegaan. Laban het die kamele losgemaak, strooi en voer vir die kamele gegee en water om sy en die manne wat by hom was, se voete te was. Daar is vir hom iets te ete voorgesit, maar het hy gesê: “Ek sal nie eet voordat ek my saak gestel het nie.” Laban het geantwoord: “Praat maar!” Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my heer baie geseën, en hy het ryk geword. Hy het vir hom kleinvee en beeste gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my heer, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring nadat sy al oud geword het. My heer het alles wat hy besit, vir hom gegee. My heer het my 'n eed laat aflê, ‘Jy mag nie vir my seun 'n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet na my familie en na my grootfamilie gaan en 'n vrou vir my seun gaan haal.’ Ek het vir my heer gesê, ‘Dalk sal die vrou my nie volg nie.’ Maar hy het vir my gesê, ‘Die Here voor wie ek leef, sal sy •engel saam met jou stuur, en hy sal jou reis goed laat afloop, en jy sal 'n vrou vir my seun kry by my grootfamilie en my familie. Net dan sal jy vry wees van die eed aan my – as jy na my grootfamilie gaan en hulle gee haar nie aan jou nie. Jy sal dan vry wees van die eed aan my.’ Ek het vandag by die fontein aangekom en gesê, ‘ Here, God van my heer Abraham, as U my reis waarop ek tans is, tog maar goed wil laat afloop! Kyk, ek staan hier by die waterbron; mag dit so wees dat die jong vrou wat uitkom om water te skep en vir wie ek vra, “Laat my asseblief bietjie water drink uit jou kruik,” en sy my dan antwoord, “Drink jy, dan sal ek ook vir jou kamele skep,” dat sy die vrou sal wees wat die Here vir die seun van my heer bestem het.’ Ek het self nog nie in my hart klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka uit met haar kruik op haar skouer, en sy gaan af na die fontein en skep water! Ek sê toe vir haar, ‘Laat my asseblief drink.’ Sy het gou haar kruik van haar skouer afgetel en gesê, ‘Drink! Ek sal ook jou kamele laat drink.’ Ek het toe gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Ek vra haar toe en sê, ‘Wie se dogter is jy?’ Sy het geantwoord, ‘Die dogter van Betuel, seun van Nahor, wat Milka vir hom in die wêreld gebring het.’ Toe het ek die ring aan haar neus en armbande om haar polse gesit. Ek het gekniel en voor die Here in aanbidding gebuig. Ek het die Here, die God van my heer Abraham, geprys, Hy wat my op die regte pad gelei het om die kleindogter van my heer se broer vir sy seun te verkry. Daarom, as julle liefde en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my. Maar indien nie, sê dit dan vir my, sodat ek regs of links kan afdraai.” Laban en Betuel het daarop gereageer en gesê: “Van die Here het die woord uitgegaan; ons kan vir jou nie iets goeds of slegs sê nie. Kyk, Rebekka is voor jou. Neem haar en gaan, sodat sy 'n vrou kan wees vir jou heer se seun, soos die Here gesê het.” Toe Abraham se slaaf hulle woorde hoor, het hy teen die grond in aanbidding gebuig voor die Here. Toe het die slaaf silwer- en goue voorwerpe en klere uitgehaal en aan Rebekka gegee. Hy het ook kosbaarhede vir haar broer en haar moeder gegee. Daarna het hy en die manne wat saam met hom was, geëet en gedrink, en die nag daar oorgebly. Toe hulle die volgende oggend opstaan, sê hy: “Laat my na my heer gaan!” Maar haar broer en haar moeder het gesê: “Laat die jong meisie nog 'n dag of tien by ons bly. Daarna kan sy gaan.” Daarop sê hy vir hulle: “Moet my nie ophou nie. Dit is die Here wat my reis goed laat afloop het; laat my toe om na my heer te gaan.” Hulle sê toe: “Kom ons roep die jong meisie, sodat ons dit uit haar eie mond kan verneem.” Hulle het Rebekka geroep en haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?” Sy het geantwoord: “Ek wil gaan.” Hulle het Rebekka, hulle suster, en haar oppasser, Abraham se slaaf en sy manne laat gaan. Hulle het Rebekka geseën en vir haar gesê: “Ons suster, mag jy duisend maal tienduisende word, en mag jou nageslag die poorte van hulle vyande in besit neem.” Rebekka en haar diensmeisies het gereedgemaak, op die kamele geklim en die man gevolg. So het die slaaf Rebekka geneem en vertrek. Isak het uit die rigting van Beër-Lagai-Roï gekom; hy het toe in die gebied van die Negev gewoon. Isak het teen die aand uitgegaan om in die veld te gaan stap, en toe hy opkyk, sien hy: Daar kom kamele aan! Rebekka het opgekyk en Isak gesien. Sy het van die kameel afgegly en vir die slaaf gevra: “Wie is daardie man wat ons in die veld tegemoetkom?” Die slaaf het geantwoord: “Dit is my heer!” Toe neem sy haar sluier en bedek haarself. Die slaaf het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het. Isak het haar in die tent van Sara, sy moeder, ingeneem. Hy het Rebekka geneem en sy het sy vrou geword, en hy het haar liefgehad. Isak is so getroos ná die dood van sy moeder. Abraham het weer 'n vrou geneem; haar naam was Ketura. Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. Joksan het Skeba en Dedan verwek. Die nageslag van Dedan was die Assuriete, die Letusiete en die Leümiete. Midian se seuns was Efa, Efer, Ganog, Abida en Eldaä. Hulle almal was die nageslag van Ketura. Abraham het alles wat aan hom behoort, vir Isak gegee. Vir die seuns van Abraham se byvroue het Abraham geskenke gegee, en hulle nog tydens sy leeftyd van sy seun Isak ooswaarts weggestuur, na die land van die ooste. Dit is die aantal jare van Abraham wat hy geleef het – 175 jaar. Abraham het sy asem uitgeblaas en op 'n hoë ouderdom gesterf, oud en ná 'n vol lewe, en hy is met sy mense verenig. Isak en Ismael, sy seuns, het hom begrawe in die grot van Magpela wat oos van Mamre lê, op die grond van Efron, die seun van Sogar, die Hetiet, die grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het. Daar is Abraham begrawe, en ook Sara, sy vrou. Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het toe by Beër-Lagai-Roï gewoon. Hier volg die familiegeskiedenis van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese slavin van Sara, vir Abraham in die wêreld gebring het. Hier volg die name van Ismael se nageslag. Hulle name is volgens hulle familiegeskiedenis: Die eersgeborene van Ismael was Nebajot, dan Kedar, Adbeël, Mibsam, Misma, Duma, Massa, Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Dit was die nageslag van Ismael, en dit was hulle name – twaalf leiers van hulle stamme in hulle gehuggies en kampe. En dit was Ismael se lewensjare – 137 jaar. Hy het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig. Ismael se nageslag het gewoon van Gawila af tot by Sur, wat oos van Egipte lê in die rigting van Assirië. Aan die oostekant van al sy bloedverwante het hy hom gevestig. Hier volg die familiegeskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham het Isak verwek. Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. Isak het by die Here gepleit ter wille van sy vrou, want sy was onvrugbaar. Die Here het hom verhoor, en Rebekka, sy vrou, het swanger geword. Die kinders in haar het mekaar weggestoot. Toe sê sy: “As dit so is, waarom moet juis ek dit oorkom?” Sy het gegaan om die Here te raadpleeg. Die Here het vir haar gesê: “Twee nasies is in jou moederskoot, en twee volke – uit jou liggaam sal hulle uitmekaar gaan. Die een volk sal sterker wees as die ander volk, en die oudste sal die jongste dien.” Toe haar tyd aanbreek om geboorte te gee, is daar 'n tweeling in haar moederskoot! Die eerste een het uitgekom, asof met 'n mantel van hare, heeltemal rooibruin. Hulle het hom Esau genoem. Daarna het sy broer uitgekom, met sy hand wat aan Esau se hakskeen vashou. Hulle het hom toe Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte. Die seuns het opgegroei. Esau het 'n knap jagter geword, 'n man van die veld; en Jakob was 'n fatsoenlike man wat in tente gewoon het. Isak het van Esau gehou, want wildsvleis was na sy smaak; Rebekka, daarenteen, het van Jakob gehou. Jakob was besig om 'n gereg gaar te maak, toe Esau van die veld af kom – hy was uitgeput. Esau sê toe vir Jakob: “Gee my asseblief 'n sluk van die rooi goed, hierdie rooi goed, want ek is uitgeput.” (Daarom word hy Edom genoem.) Jakob het geantwoord: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.” Toe sê Esau: “Kyk, ek is op die punt om dood te gaan; wat is 'n eersgeboortereg dan vir my werd?” Jakob het gesê: “Lê eers vir my 'n eed af.” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. Jakob gee toe vir Esau brood en die kooksel lensies. Hy het geëet en gedrink, opgestaan en weggegaan. So het Esau sy eersgeboortereg geminag. Daar was hongersnood in die land, afgesien van die eerste hongersnood wat daar was in die tyd van Abraham. Isak het toe na Gerar, na Abimeleg, die koning van die Filistyne, gegaan. Die Here het aan hom verskyn en gesê: “Moenie afgaan na Egipte nie. Bly in die land waar Ek vir jou sê. Woon as •vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag gee Ek al hierdie lande, en Ek sal die eed wat Ek vir jou vader Abraham afgelê het, gestand doen. Ek sal jou nageslag so talryk maak soos die sterre aan die hemelruim, en aan jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat Abraham na my stem geluister het en die verpligtinge wat Ek oplê, my bevele, my vaste voorskrifte en my wette, nagekom het.” So het Isak toe in Gerar gaan woon. Die manne van die plek het hom oor sy vrou uitgevra. Hy het gesê, “Sy is my suster;” want hy was bang om te sê, “my vrou,” anders, het hy gedink, maak die manne van die plek my dood oor Rebekka. Sy was immers beeldskoon. Isak was al 'n lang tyd daar, toe kyk Abimeleg, die koning van die Filistyne, af deur die venster en sien – Isak liefkoos dan vir Rebekka, sy vrou! Abimeleg ontbied toe vir Isak en sê: “Maar sy is dan eintlik jou vrou! Hoe kon jy gesê het sy is jou suster?” Isak het hom geantwoord: “Omdat ek gedink het dat ek anders oor haar sou sterf.” Daarop sê Abimeleg: “Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon iemand uit die volk nie by jou vrou geslaap het nie, en dan het jy skuld oor ons gebring!” Abimeleg het toe aan die hele volk 'n bevel uitgereik: “Die een wat aan hierdie man of sy vrou raak, sal beslis sterf.” Isak het in daardie landstreek gesaai, en hy het dié jaar honderdvoudig geoes. So het die Here hom geseën. Die man het ryk geword; hy het al hoe ryker geword, totdat hy skatryk was. Hy het kuddes kleinvee en beeste besit en 'n groot werksmag, sodat die Filistyne hom beny het. Al die putte wat die slawe van sy vader in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe het, het die Filistyne toegestop en met grond opgevul. Abimeleg sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons af, want jy het heeltemal te sterk geword vir ons.” Isak het daarvandaan weggegaan en kamp opgeslaan in die Gerardal. Hy het hom daar gevestig. Isak het die putte wat in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe is, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, weer oopgegrawe. Hy het hulle dieselfde name gegee wat sy vader hulle gegee het. Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in 'n put af op 'n wateraar. Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se slawe het toe 'n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. Hy het daarvandaan verder getrek en 'n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.” Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. Daardie nag het die Here aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” Hy het toe daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar 'n put uitgekap. Abimeleg het uit Gerar na hom gekom, en ook Agussat, sy vriend, en Pigol, die bevelvoerder van sy leër. Isak sê toe vir hulle: “Waarom kom julle nou na my toe, terwyl dit julle is wat vyandig was teenoor my, en my van julle af weggestuur het?” Hulle het geantwoord: “Ons het duidelik gesien dat die Here met jou is. Toe dink ons: Daar moet tog 'n ooreenkoms tussen ons wees – tussen ons en jou. Ons wil 'n verdrag met jou sluit: Jy moet ons nie kwaad aandoen nie, net soos ons nie aan jou geraak het nie, en soos wat ons net goed aan jou gedoen en jou ongedeerd weggestuur het. Jy is nou die geseënde van die Here. ” Isak het toe vir hulle 'n maaltyd voorberei, en hulle het geëet en gedrink. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en vir mekaar 'n eed afgelê. Isak het hulle daarna weggesien, en hulle het in vrede van hom af weggegaan. Op dieselfde dag het Isak se slawe gekom en hom ingelig oor die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry!” Hy het dit toe Seba genoem. Daarom is die naam van die dorp Berseba; dit is vandag nog so. Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Jehudit, die dogter van Beëri, die Hetiet, as vrou geneem, en ook Basemat, die dogter van Elon, die Hetiet. Vir Isak en Rebekka was hulle 'n bron van bitter verdriet. Toe Isak al oud was en sy oë so verswak het dat hy nie meer kon sien nie, het hy Esau, sy oudste seun, geroep en vir hom gesê: “My seun!” Hy het hom geantwoord: “Ja, pa?” Isak sê toe: “Kyk, ek is oud. Ek ken nie my sterfdag nie. Neem nou jou jaggereedskap, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit veld toe en jag vir my 'n stuk wild. Berei dan vir my 'n smaaklike gereg voor soos ek daarvan hou, en bring dit vir my, sodat ek kan eet en jou kan seën voordat ek sterf.” Rebekka het geluister toe Isak met sy seun Esau praat. Toe Esau veld toe gaan om 'n stuk wild te jag om dit te bring, sê sy vir haar seun Jakob: “Kyk, ek het jou pa vir jou broer Esau hoor sê, ‘Bring vir my wildsvleis en berei vir my 'n smaaklike gereg voor, sodat ek kan eet en jou in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor my dood.’ My seun, luister dan nou na wat ek jou beveel! Gaan na die kleinvee en bring vir my daarvandaan twee mooi bokkies, sodat ek hulle as 'n smaaklike gereg vir jou pa kan voorberei – soos hy daarvan hou. Dan moet jy dit vir jou pa neem, dat hy kan eet, sodat hy jou kan seën voor sy dood.” Maar Jakob het vir Rebekka, sy moeder, gesê: “Kyk, my broer Esau is 'n harige man, en ek het 'n gladde vel. Miskien raak my pa aan my, dan sal ek in sy oë iemand wees wat die spot dryf. Ek sal dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.” Sy moeder het egter vir hom gesê: “Op my kan jou vloek maar rus, my seun. Luister net na my en gaan haal dit vir my!” Hy het dit toe gaan haal en vir sy moeder gebring. Sy moeder het 'n smaaklike gereg voorberei, soos sy vader daarvan hou. Toe neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan. Die vel van die bokkies trek sy toe oor sy arms en oor die gladde deel van sy nek, en sy oorhandig die smaaklike gereg en die brood wat sy voorberei het, aan haar seun Jakob. Toe hy by sy vader kom, sê hy: “My vader!” Hy het geantwoord: “Ja? Wie is jy, my seun?” Jakob sê toe vir sy vader: “Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen wat u vir my gesê het. Kom regop, sit en eet van my wildsvleis, sodat u my kan seën.” Toe vra Isak vir sy seun: “Maar hoe het jy dit dan so gou gekry, my seun?” Hy het geantwoord: “Omdat die Here u God dit vir my so laat gebeur het.” Isak sê toe vir Jakob: “Kom bietjie nader, sodat ek aan jou kan voel, my seun, of jy werklik my seun Esau is of nie.” Jakob gaan toe nader aan Isak, sy vader, en hy voel aan hom. Toe sê hy: “Die stem is die stem van Jakob, maar die arms is die arms van Esau.” Hy het hom egter nie herken nie, want sy arms was harig, soos sy broer Esau se arms. So het hy hom geseën. Hy het gevra: “Is jy werklik my seun Esau?” En hy het gesê: “Ek is.” Hy sê toe: “Bring die gereg vir my nader; ek wil van die wildsvleis van my seun eet, sodat ek jou kan seën.” Hy het dit vir hom nadergebring en hy het geëet. Hy het ook vir hom wyn gebring en hy het gedrink. Isak, sy vader, het vir hom gesê: “Kom tog nader en soen my, my seun!” Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Toe Isak die reuk van sy klere kry, het hy hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die reuk van die veld wat die Here geseën het. Mag God jou van die dou van die hemel gee, en die vrugbaarste dele van die aarde, 'n oorvloed koring en •nuwe wyn. Volke sal jou dien en nasies sal diep voor jou buig. Wees 'n heerser oor jou broers, sodat die seuns van jou moeder diep voor jou sal buig. Hulle wat jou vervloek, is vervloek, en hulle wat jou seën, is geseënd.” Net toe Isak daarmee klaar was om Jakob te seën, en Jakob pas van sy vader Isak af na buite gegaan het, kom sy broer Esau terug van sy jagtog af. Ook hy het 'n smaaklike gereg voorberei, dit vir sy vader geneem en vir sy vader gesê: “My vader moet regop kom en van sy seun se wildsvleis eet sodat u my kan seën.” Maar sy vader Isak vra vir hom: “Wie is jy?” Waarop hy antwoord: “Ek is u seun, u eersgeborene, Esau.” Isak het verskriklik aan die bewe gegaan en gevra: “Wie is dit dan wat wildsvleis gejag en vir my gebring het? Ek het van alles geëet voordat jy ingekom het, en ek het hom geseën. Hy sal dan ook geseënd wees!” Toe Esau sy vader se woorde hoor, het hy baie hard en met groot bitterheid geskreeu. Hy het vir sy vader gesê: “Seën my ook, my vader!” Maar hy het geantwoord: “Jou broer het met bedrog gekom en jou seën gevat!” Esau het gesê: “Is dit omdat sy naam Jakob is dat hy my nou al twee keer bedrieg het? My eersgeboortereg het hy gevat, en kyk, nou het hy my seën gevat!” Toe vra Esau: “Het u nie vir my 'n seën uitgehou nie?” Isak het geantwoord en vir Esau gesê: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou aangestel, en ek het al sy broers vir hom as dienaars gegee. Koring en nuwe wyn het ek vir hom voorsien. Wat kan ek dan nog vir jou doen, my seun?” Daarop vra Esau vir sy vader: “Het u dan net een seën, my vader? Seën my ook, my vader!” Toe begin Esau hardop huil. Isak, sy vader, het daarop gereageer en vir hom gesê: “Kyk, weg van die vrugbaarste dele van die aarde sal jou woonplek wees, en weg van die dou van die hemel daar bo. Van jou swaard sal jy leef, en jou broer sal jy dien. Maar wanneer jy wegbreek, sal jy sy juk van jou nek afruk.” Esau was vyandig teenoor Jakob oor die seën waarmee sy vader hom geseën het. Esau het in sy hart gesê: “Die dae van rou oor my pa kom nader; dan gaan ek my broer Jakob doodmaak.” Toe Rebekka ingelig is oor die woorde van haar oudste seun Esau, het sy haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Kyk, jou broer Esau wil hom op jou wreek deur jou dood te maak. My seun, luister dan nou na my: Maak gereed en vlug na my broer Laban in Haran. Bly 'n tyd lank by hom totdat die woede van jou broer bedaar het, totdat die toorn van jou broer teen jou bedaar het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Ek sal dan iemand stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?” Rebekka het vir Isak gesê: “Ek het 'n weersin in my lewe as gevolg van hierdie Hetitiese vroumense. As Jakob uit die Hetitiese vroue, uit die vroue van die land, 'n vrou neem soos hierdie twee – waarvoor leef ek dan?” Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder. Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem. Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! En kyk, die Here staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!” Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!” Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as 'n kopstut neergesit het, geneem en dit as 'n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus. Jakob het toe 'n gelofte afgelê: “As God met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die Here my God wees, en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, 'n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.” Jakob het haastig vertrek en na die land van die mense in die ooste gegaan. Hy sien toe meteens 'n put in die veld. En kyk, daar was drie troppe kleinvee wat daar rus, want uit hierdie put het hulle die troppe kleinvee water gegee. Die klip oor die opening van die put was groot. Wanneer al die troppe daar bymekaar was, het hulle die klip weggerol van die opening van die put en die kleinvee water gegee. Dan het hulle die klip teruggeplaas op sy plek oor die opening van die put. Jakob vra toe vir hulle: “My broers, waarvandaan is julle?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran. ” Hy vra toe vir hulle: “Ken julle vir Laban, die seun van Nahor?” Hulle het geantwoord: “Ons ken hom.” Toe vra hy hulle: “Gaan dit goed met hom?” Hulle het geantwoord: “Goed. Kyk, daar kom Ragel, sy dogter, met die kleinvee aan.” Hy sê toe: “Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Gee die kleinvee water en laat hulle wei!” Hulle het egter gesê: “Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie. Dan word die klip van die put se opening af weggerol, en gee ons die kleinvee water.” Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee wat aan haar vader behoort, daar aan, want sy was 'n veewagter. Toe Jakob vir Ragel, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en ook die kleinvee van Laban, sy moeder se broer, sien, het hy nader gegaan. Jakob het die klip van die put se opening af weggerol, en die kleinvee van Laban, sy moeder se broer, water gegee. Jakob het Ragel gesoen en hardop gehuil. Jakob vertel toe vir Ragel dat hy bloedfamilie van haar vader is, en dat hy Rebekka se seun is. Sy het gehardloop en dit vir haar vader gaan vertel. Toe Laban die nuus oor Jakob, sy suster se seun, hoor, het hy gehardloop om hom te ontmoet, hom omhels, hom gesoen en na sy huis geneem. Jakob het vir Laban die hele gebeure oorvertel. Laban sê toe vir hom: “Jy is beslis my vlees en bloed. ” Hy het 'n volle maand by hom gebly. Daarna sê Laban vir Jakob: “Is dit omdat jy bloedfamilie is dat jy verniet vir my moet werk? Sê vir my wat jou vergoeding moet wees.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste se naam was Lea en die jongste se naam was Ragel. Lea se oë was dof, maar Ragel het 'n mooi voorkoms gehad; sy was beeldskoon. Jakob was verlief op Ragel; hy sê toe: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir Ragel, u jongste dogter.” Laban het geantwoord: “Dit is beter as ek haar vir jou gee as dat ek haar vir 'n ander man gee. Bly by my!” Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel. In sy oë was dit soos 'n paar dae, want hy was lief vir haar. Jakob sê toe vir Laban: “Gee my vrou, want my dienstyd is voltooi. Ek wil by haar ingaan. ” Laban het al die manne van die omgewing byeengebring en 'n feesmaal gehou. Toe dit aand word, het hy sy dogter Lea geneem en haar vir Jakob gebring. Hy het toe by haar ingegaan. (Laban het vir haar, vir sy dogter Lea, sy slavin Silpa as slavin gegee.) Toe dit oggend word, toe is dit Lea! Hy het vir Laban gesê: “Wat het u my aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek vir u gewerk het nie? Waarom het u my mislei?” Laban het geantwoord: “Dit word nie hier by ons so gedoen nie – om die jongste dogter voor die eersgeborene af te gee nie. Voltooi hierdie een se week, dan gee ons vir jou ook die ander een vir die diens wat jy by my sal lewer vir 'n verdere sewe jaar.” Jakob het toe so gemaak. Hy het die week met haar voltooi. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. Laban het sy slavin Bilha aan sy dogter Ragel as slavin vir haar gegee. Jakob het ook by Ragel ingegaan. Hy het dan ook vir Ragel meer liefgehad as vir Lea. So het hy 'n verdere sewe jaar by Laban gewerk. Die Here het gesien dat Lea die nie-geliefde is, en Hy het haar moederskoot oopgemaak; maar Ragel was onvrugbaar. Lea het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Ruben genoem, want sy het gesê: “Ja, die Here het my ellende raakgesien, want nou sal my man my liefhê.” Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Ja, die Here het gehoor dat ek die nie-geliefde is, want Hy het my ook hierdie seun gegee.” En sy het hom Simeon genoem. Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Uiteindelik sal my man hom nou by my aansluit, want ek het al vir hom drie seuns in die wêreld gebring.” Daarom het sy hom Levi genoem. Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het gesê: “Hierdie keer sal ek die Here prys.” Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het toe opgehou om kinders in die wêreld te bring. Toe Ragel sien dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld kan bring nie, was sy afgunstig op haar suster. Sy het vir Jakob gesê: “Gee vir my kinders! Indien nie, dan sterf ek!” Jakob het kwaad geword vir Ragel en gevra: “Is ek in die plek van God, wat van jou die vrug van die moederskoot weerhou?” Sy sê toe: “Hier is my slavin Bilha. Gaan by haar in, sodat sy op my knieë geboorte kan gee en ook ek deur haar 'n familie kan opbou. ” Sy het toe haar slavin Bilha vir hom as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan. Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê Ragel: “God het aan my reg verskaf en my ook verhoor toe Hy vir my 'n seun gegee het.” Daarom het sy hom Dan genoem. Bilha, die slavin van Ragel, het weer swanger geword en vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. Ragel het toe gesê: “Ek het 'n bomenslike worstelstryd met my suster gehad, maar het ook oorwin!” Sy het hom Naftali genoem. Toe Lea sien dat sy opgehou het om kinders in die wêreld te bring, het sy Silpa, haar slavin, geneem en haar vir Jakob as vrou gegee. Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. Lea het gesê: “Geluk het gekom!” Sy het hom Gad genoem. Silpa, Lea se slavin, het vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. Lea het gesê: “Tot my geluk! Want die vroue sal my gelukkig noem.” Sy het hom Aser genoem. Ruben het in die tyd van die koringoes uitgegaan en in die land op alruin afgekom. Hy het dit vir Lea, sy moeder, geneem. Ragel het vir Lea gesê: “Gee asseblief vir my van jou seun se alruin.” Maar sy het haar geantwoord: “Was dit nie vir jou genoeg om my man te vat nie, dat jy ook nog my seun se alruin wil vat?” Daarop sê Ragel toe: “Nou goed, hy mag maar vannag by jou slaap in ruil vir jou seun se alruin.” Toe Jakob teen die aand van die land af kom, het Lea uitgegaan om hom te ontmoet en vir hom gesê: “Na my moet jy kom, want ek het jou eerlik gehuur met my seun se alruin.” Hy het toe daardie nag by haar geslaap. God het Lea verhoor; sy het swanger geword en vir Jakob 'n vyfde seun in die wêreld gebring. Lea sê toe: “God het my beloning vir my gegee, omdat ek my slavin vir my man gegee het.” Sy het hom Issaskar genoem. Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring. Lea het gesê: “God het vir my 'n mooi geskenk gegee! Hierdie keer sal my man sy intrek by my neem, want ek het vir hom ses seuns in die wêreld gebring.” Sy het hom Sebulon genoem Daarna het Lea geboorte gegee aan 'n dogter, en sy het haar Dina genoem. God het ook aan Ragel gedink. God het haar verhoor en haar moederskoot oopgemaak. Sy het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het gesê: “God het my bespotting weggeneem!” Sy het hom Josef genoem en gesê: “Mag die Here vir my nog 'n seun byvoeg.” Nadat Ragel aan Josef geboorte gegee het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my gaan, sodat ek na my plek en my land kan gaan. Gee vir my my vroue en my kinders, vir wie ek vir jou gewerk het, sodat ek kan gaan, want jy weet self watter werk ek vir jou gedoen het.” Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil. ” Verder sê hy: “Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het hom geantwoord: “Jy weet self hoe ek vir jou gewerk het, en wat met jou veestapel by my gebeur het. Ja, min het jy gehad voor my koms, maar dit het geweldig toegeneem, en die Here het jou geseën waar my voet getrap het. Maar nou, wanneer kan ek ook iets vir mý huis doen?” Laban het gevra: “Wat moet ek vir jou gee?” Jakob het geantwoord: “Jy hoef my nie enigiets te gee nie. As jy die volgende vir my doen, sal ek weer jou kleinvee laat wei en oppas: Ek sal vandag al jou kleinvee deurgaan en elke bont en gevlekte dier uitkeer – elke donkerkleurige dier onder die jong skape, en die gevlektes en bontes onder die bokke. Dit sal my loon wees. My eerlikheid sal in die toekoms vir my getuig wanneer jy kom om my loon na te gaan. Alles wat nie bont en gevlek is onder die bokke, of donkerkleurig is onder die jong skape nie, sal gesteelde goedere by my wees.” Laban het gesê: “Goed, as dit maar net gebeur soos jy sê!” Hy het egter dieselfde dag die gestreepte en gevlekte bokramme en al die bont en gevlekte bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en al die donkerkleuriges onder die jong skape, uitgekeer en hulle in die sorg van sy seuns gelaat. Hy het 'n afstand van drie dagreise tussen hom en Jakob gehandhaaf. Jakob het die res van Laban se kleinvee laat wei. Jakob het groen latte van populiere, amandelbome en platane geneem. Hy het stroke bas daarvan afgeskil om die wit van die latte te ontbloot. Toe sit hy die takke wat hy geskil het, in die waterbakke reg voor die kleinvee, in die drinkbakke waarheen die kleinvee kom om te drink. Hulle het bronstig geraak wanneer hulle kom om te drink. So het die kleinvee by die latte bronstig geraak, en die kleinvee het gestreepte, bont en gevlekte lammers gekry. Jakob het dié jong skape afgesonder. Hy het die kleinvee laat kyk in die rigting van die gestreeptes en al die donkerkleuriges onder Laban se kleinvee. So het Jakob vir homself afsonderlike kuddes opgebou en hulle nie saam met Laban se kleinvee aangehou nie. Telkens wanneer ook al die sterkste ooie bronstig was, het Jakob die latte in die waterbakke neergesit, voor die oë van die kleinvee, sodat hulle by die latte bronstig kon wees. Wanneer die kleinvee egter swak was, het hy dit nie neergesit nie. Die swakkes was vir Laban en die sterkes vir Jakob. Die man se besittings het geweldig uitgebrei. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad. Jakob het die woorde van Laban se seuns gehoor toe hulle sê: “Jakob het alles gevat wat aan ons pa behoort; uit wat aan ons pa behoort, het hy al hierdie rykdom bymekaargemaak.” Jakob het dit aan Laban se gesig gesien – kyk, hy was nie meer teenoor hom soos gister en eergister nie! Die Here sê toe vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou voorouers en na jou familie. Ek sal met jou wees.” Jakob het Ragel en Lea ontbied na die veld toe, na sy kleinvee toe, en vir hulle gesê: “Ek sien aan julle pa se gesig dat hy nie meer teenoor my is soos gister en eergister nie. Maar die God van my vader was met my. Julle weet tog self dat ek met al my krag vir julle pa gewerk het. Maar julle pa het my vir die gek gehou en my vergoeding tien keer verander. God het hom egter nie toegelaat om my skade aan te doen nie. As hy sê, ‘Bontes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee bontes; en as hy weer sê, ‘Gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee gestreeptes. God het julle pa se vee weggeneem en dit vir my gegee. In die tyd toe die kleinvee bronstig was, het ek in 'n droom rondgekyk en gesien: Kyk, die ramme wat die kleinvee dek, is gestreep en bont en gespikkel. Die •Engel van God het in die droom vir my gesê, ‘Jakob!’ en ek het geantwoord, ‘Hier is ek!’ Hy sê toe, ‘Kyk rond, dan sal jy sien dat al die ramme wat die kleinvee dek, gestreep, bont en gespikkel is. Ek het immers alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-El, waar jy 'n gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte afgelê het. Maak nou gereed, trek weg uit hierdie land en keer terug na die land van jou herkoms.’ ” Ragel en Lea het daarop geantwoord en vir hom gesê: “Het ons nog enige aandeel aan of erfenis in die huis van ons pa? Is ons nie deur hom as vreemdes beskou nie? Want hy het ons verkoop, en ons koopprys ook volledig opgebruik. Ja, al die rykdom wat God van ons pa weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Daarom, alles wat God vir jou gesê het, doen dit!” Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan. Toe Laban gegaan het om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode gesteel wat aan haar vader behoort. Jakob het Laban, die Arameër, se vertroue geskend deurdat hy hom nie ingelig het dat hy gaan vlug nie. Hy het gevlug met alles wat aan hom behoort. Hy het gereedgemaak, die Rivier oorgesteek en koers ingeslaan in die rigting van die bergland van Gilead. Op die derde dag is daar aan Laban berig gebring dat Jakob gevlug het. Hy het toe sy familielede saam met hom geneem en Jakob agternagesit, sewe dagreise lank. Toe was hy op sy hakke in die bergland van Gilead. God het egter in 'n droom in die nag na Laban, die Arameër, gekom en vir hom gesê: “Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie. ” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy kamp opgeslaan in die bergland, en Laban met sy familielede het hulle kamp opgeslaan in die bergland van Gilead. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my vertroue geskend en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer. Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere. Maar jy het my nie die geleentheid gegee om my kleinseuns en my dogters te soen nie. Jy het nou 'n dwase ding gedoen. Dit is binne my mag om julle kwaad aan te doen; maar die God van julle vader het verlede nag vir my gesê, ‘Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.’ Maar nou is jy vasbeslote op pad omdat jy so erg verlang na jou ouerhuis. Waarom het jy dan my gode gesteel?” Jakob het hom verweer en vir Laban gesê: “Ek het weggegaan omdat ek bang was! Want ek het gedink anders sal jy jou dogters met geweld van my afneem. By wie ook al jy jou gode vind – hy mag nie bly leef nie. Voor ons familielede sê ek, ‘Wys uit wat van jou by my is, en neem dit vir jou!’ ” Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Laban het in Jakob se tent ingegaan, ook in Lea se tent en dié van die twee slavinne, maar niks gekry nie. Toe hy uit Lea se tent kom, het hy in Ragel se tent ingegaan. Ragel het egter die huisgode geneem, dit in die saalsak van 'n kameel gesteek en daarop gaan sit. Laban het alles in die tent deursoek, maar niks gekry nie. Ragel sê toe vir haar vader: “Moet my nie kwaad aankyk nie, my heer, omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit is met my soos dit soms met vroue is.” Hy het deeglik gesoek, maar kon nie die huisgode kry nie. Jakob het kwaad geword en sy saak teenoor Laban gestel. Jakob het homself verdedig en vir Laban gesê: “Wat is my oortreding? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so op my spoor is? Want jy het al my goed deursoek! Wat het jy, van enigiets wat uit jou huis kom, gevind? Sit dit dan hier voor my familielede en jou familielede neer, sodat hulle tussen ons twee kan beslis. Twintig jaar was ek nou by jou gewees. Jou skaapooie en jou bokooie het nie misgeboortes gehad nie. Die ramme van jou kleinvee het ek nie geëet nie. Diere wat verskeur is, het ek nie na jou geneem nie; ek moes self die skade ly. Uit my hand het jy geëis wat bedags gesteel is en snags gesteel is. So het dit met my gegaan: Bedags het die hitte my verteer, en die koue snags. Slaap het van my oë weggevlug. So was dit vir my twintig jaar lank in jou huis. Ek het vir jou veertien jaar gewerk vir jou twee dogters, en ses jaar vir jou kleinvee; en jy het my vergoeding tien keer verander. As die God van my voorvader, die God van Abraham, die Vrees van Isak, nie vir my was nie, ja, dan sou jy my nou met leë hande weggestuur het. Maar my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande – God het dit gesien, en verlede nag daaroor beslis.” Laban reageer toe daarop en sê vir Jakob: “Die dogters is my dogters, en die kinders is my kinders, en die kleinvee is my kleinvee. Alles wat jy sien, behoort aan my. Maar my dogters, hoe kan ek hulle vandag iets aandoen, of hulle kinders wat hulle in die wêreld gebring het? Kom dan nou, laat ons 'n ooreenkoms aangaan, ek en jy, en dit sal 'n getuie wees tussen my en jou.” Jakob het toe 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. Jakob het ook vir sy familielede gesê: “Maak klippe bymekaar!” Hulle het toe klippe geneem en op 'n hoop gepak. Daar by die klipstapel het hulle geëet. Laban het dit Jegar-Sahaduta genoem, maar Jakob het dit Gal-Ed genoem. Laban het gesê: “Hierdie klipstapel is vandag 'n getuie tussen my en jou.” Daarom is dit Gal-Ed genoem, en ook Mispa, omdat hy gesê het: “Mag die Here waghou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie meer sien nie. As jy my dogters verneder, en as jy benewens my dogters nog vroue neem – al is daar geen mens by ons nie – besef dan: God is getuie tussen my en jou.” Laban sê toe ook vir Jakob: “Hier is hierdie klippe, en hier is die gedenksteen wat ek opgerig het tussen my en jou. Hierdie stapel klippe is 'n getuie en die gedenksteen is 'n getuie: Ek mag beslis nie by hierdie klipstapel verbytrek na jou toe nie, en jy mag beslis nie by hierdie klipstapel en hierdie gedenksteen verbytrek na my toe met kwade bedoelings nie. Die God van Abraham en die god van Nahor, hulle sal tussen ons beslis.” Dit is die God van hulle voorvader. Jakob het 'n eed afgelê by die Vrees van sy vader Isak. Daarna het Jakob 'n offerdier geslag op die berg, en sy familielede genooi om 'n maaltyd te eet. Hulle het die maaltyd geëet en die nag op die berg oorgebly. Laban het vroeg die oggend opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Toe het Laban weggegaan en teruggekeer na sy plek. Jakob het sy reis voortgesit. Engele van God het hom teëgekom. Jakob het, toe hy hulle sien, gesê: “Dit is die leër van God!” Hy het daardie plek toe Maganajim genoem. Jakob het boodskappers voor hom uit gestuur na Esau, sy broer, na die land Seïr, in die gebied van Edom. Hy het hulle opdrag gegee: “So moet julle vir my heer, vir Esau, sê, ‘So sê u dienaar Jakob: “By Laban het ek as •vreemdeling gewoon, en ek het daar vertoef tot nou toe. Ek het beeste en donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek stuur graag die boodskappers om my heer in te lig, sodat ek guns kan vind in u oë.” ’ ” Die boodskappers het na Jakob teruggekeer en gesê: “Ons het by u broer Esau aangekom. Wat meer is, hy is op pad om u te ontmoet, met vierhonderd man by hom!” Jakob het baie bang geword; dit het hom benoud gemaak. Hy het toe die mense wat by hom was, die kleinvee, die beeste en kamele in twee kampe verdeel. Hy het gedink: As Esau op die een kamp afkom en dit aanval, kan die kamp wat oorbly, ontvlug. Jakob het gesê: “God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, Here, U wat vir my gesê het, ‘Gaan terug na jou land en jou familie, en Ek sal aan jou goed doen’ – ek is te gering vir al die gunsbewyse en al die trou wat U aan u dienskneg bewys het, want ek het met net my wandelstok hierdie Jordaan oorgesteek, en nou het ek twee vol kampe geword. Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom. Anders kom hy en verslaan my – die ma's saam met die kinders. U het self gesê, ‘Ek sal beslis aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see, wat vanweë die hoeveelheid nie getel kan word nie.’ ” Jakob het daardie nag daar oorgebly. Toe het hy uit wat hy bekom het, vir sy broer Esau 'n geskenk gehaal: tweehonderd bokooie en twintig bokramme, tweehonderd skaapooie en twintig skaapramme, dertig kameelkoeie in melk met hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien donkiehingste. Hy het dit onder die toesig van sy slawe geplaas – trop vir trop elkeen op sy eie. Hy het vir sy slawe gesê: “Trek voor my uit, maar hou 'n afstand tussen trop en trop.” Hy het die eerste een opdrag gegee: “As my broer Esau jou teëkom en vir jou vra, ‘Aan wie behoort jy; waarheen gaan jy, en aan wie behoort daardie diere voor jou?’ moet jy sê, ‘Dit behoort aan u dienaar, aan Jakob. Dit is 'n geskenk, gestuur vir my heer, vir Esau. Kyk, hy is ook self agter ons.’ ” Hy het aan sowel die tweede en die derde slaaf, asook aan almal wat agter die troppe loop, opdrag gegee: “Julle moet hierdie selfde woorde vir Esau sê wanneer julle hom teëkom, en julle moet ook sê, ‘Kyk, u dienaar Jakob is agter ons.’ ” Want hy het gedink: Ek wil hom tot bedaring bring met die geskenk wat voor my uit gaan; daarna sal ek hom persoonlik ontmoet. Miskien aanvaar hy my. Die geskenk het voor hom uit gegaan, maar hy self het daardie nag in die kamp oornag. In daardie nag het hy opgestaan, sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die drif van die Jabbok gegaan. Hy het hulle geneem, hulle deur die spruit laat gaan, en alles wat aan hom behoort, laat deurgaan. Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Hy het gesê: “Laat my gaan, want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën.” Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.” Jakob vra toe en sê: “Maak asseblief u Naam bekend!” Maar hy het geantwoord: “Waarom vra jy dan my Naam?” Hy het hom toe daar geseën. Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan. Hy was mank aan sy heup. Daarom eet die Israeliete tot vandag toe nie die seningrige spier wat aan die heupgewrig vas is nie, omdat hy die heupgewrig van Jakob, die seningrige spier, getref het. Toe Jakob opkyk, sien hy: Daar kom Esau aan met vierhonderd man by hom! Hy het die kinders onder Lea en Ragel en die twee slavinne verdeel. Hy het die slavinne en hulle kinders eerste geplaas, Lea en haar kinders agter hulle, en Ragel en Josef laaste. Hy self het voor hulle uit gegaan en sewe keer diep neergebuig teen die grond, totdat hy naby sy broer gekom het. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Hy het hom om die nek geval en hom gesoen. Hulle het gehuil. Toe Esau rondkyk en die vroue en kinders sien, vra hy: “Wie is hierdie mense by jou?” Hy het geantwoord: “Dit is die kinders wat God uit genade vir u dienaar gegee het.” Die slavinne, hulle en hulle kinders, het nader gekom en diep gebuig. Ook Lea en haar kinders het nader gekom en diep gebuig. Daarna het Josef en Ragel nader gekom en diep gebuig. Esau vra toe: “Wat is jou bedoeling met hierdie hele leërskare wat ek teëgekom het?” Jakob het geantwoord: “Dit is om guns te vind in die oë van my heer.” Daarop sê Esau: “Ek het baie, my broer; wat joune is, moet joune bly.” Jakob het egter gesê: “Nee, asseblief! As ek guns gevind het in u oë, neem dan my geskenk uit my hand. Juis daarom kon ek u gesig sien, net soos 'n mens God se gesig sien – en u het my aanvaar. Aanvaar dan asseblief my geskenk wat vir u gebring is, want God was my genadig, en ek het alles.” Hy het by hom aangedring, en hy het dit toe aanvaar. Esau het gesê: “Kom ons breek kamp op en gaan verder. Ek sal voor jou trek.” Maar hy het vir hom gesê: “My heer weet dat die kinders swak is, en dat daar by my klein- en grootvee in melk is. As hulle net een dag hard gedryf word, is al die kleinvee dood. My heer kan gerus voor sy dienaar uit trek. Ek sal self rustig verder trek teen die pas van die diere voor my, en teen die pas van die kinders, totdat ek by my heer in Seïr aankom.” Esau sê toe: “Laat ek dan van die manskappe wat by my is, by jou agterlaat.” Hy het egter gesê: “Waarom juis dit? Mag ek maar net guns vind in die oë van my heer.” Esau het daardie dag omgedraai, op sy pad na Seïr toe. Maar Jakob het na Sukkot getrek. Hy het vir hom 'n huis gebou en vir sy vee takkrale gemaak. Daarom het hy die plek Sukkot genoem. So het Jakob, toe hy uit Paddan-Aram gekom het, ongedeerd aangekom by Sigem se dorp, wat in die land Kanaän is. Hy het aan die oostekant van die dorp kamp opgeslaan. Die stuk veld waar hy sy tente opgeslaan het, het Jakob van die seuns van Gamor, Sigem se vader, gekoop vir 'n honderd kesita. Jakob het daar 'n altaar opgerig en dit genoem El-Elohe-Jisrael. Dina, die dogter wat Lea vir Jakob in die wêreld gebring het, het uitgegaan om na die dogters van die omgewing te gaan kyk. Toe Sigem, die seun van Gamor, die Hewiet, en die leier van die gebied, haar sien, het hy haar geneem, by haar geslaap en haar verneder. Hy was geheg aan Dina, die dogter van Jakob. Hy het verlief geraak op die jong meisie, en hy het mooi met die jong meisie gepraat. Sigem sê toe vir Gamor, sy vader: “Kry vir my hierdie meisie as vrou.” Jakob het gehoor dat hy sy dogter Dina onteer het. Maar sy seuns was nog by die vee in die veld, en hy het stilgebly totdat hulle gekom het. Gamor, Sigem se vader, het uitgegaan na Jakob om met hom te onderhandel. Die seuns van Jakob het uit die veld gekom die oomblik toe hulle die berig kry. Die manne was diep gegrief en baie kwaad, want Sigem het 'n gruweldaad gepleeg teen Israel deur by die dogter van Jakob te slaap. So iets mag nie gedoen word nie. Gamor het met hulle onderhandel en gesê: “My seun Sigem het sy hart verloor op julle dogter. Gee haar asseblief aan hom as vrou. Ondertrou met ons! Julle kan julle dogters vir ons gee en ons dogters vir julle neem. Julle kan by ons woon. Die land lê oop voor julle: Woon daar, trek daar rond en verkry eiendom daar.” Sigem sê toe vir haar vader en broers: “Mag ek guns vind in julle oë! Wat julle ook al van my vra, sal ek gee. Maak die bruidsprys vir my maar baie hoog, en ook die geskenk, en ek sal gee wat julle vir my sê. Gee net vir my die jong meisie as vrou.” Die seuns van Jakob het Sigem en Gamor, sy vader, met sluheid geantwoord, en het onderhandel, omdat hy hulle suster Dina onteer het. Hulle het vir hulle gesê: “Ons kan so iets nie doen nie – om ons suster te gee aan 'n man wat nie besny is nie; trouens, dit sal vir ons 'n skande wees. Net op hierdie voorwaarde sal ons instem: as julle word soos ons, deur al die manlikes by julle te laat besny. Ons sal dan ons dogters aan julle gee en julle dogters vir ons neem. Ons sal by julle woon en een volk word. Maar as julle nie aan ons gehoor gee deur besny te word nie, vat ons ons dogter en vertrek.” Hulle woorde was goed in die oë van Gamor en Sigem, seun van Gamor. Die jong man het nie getalm om die saak tot uitvoer te bring nie, want hy het Jakob se dogter begeer, en hy was die mees geëerde lid van sy vader se hele familie. Gamor en sy seun Sigem het na die poort van hulle dorp gegaan en met die manne van hulle dorp onderhandel: “Hierdie manne is vredeliewend. Laat hulle by ons woon in die land en daarin rondtrek. Kyk, die land lê alkante toe wyd oop voor hulle. Hulle dogters kan ons vir ons as vroue neem, en ons dogters kan ons aan hulle gee. Net op hierdie voorwaarde sal die manne instem om by ons te bly, om een volk te word: as al die manlikes by ons besny word, soos hulle besny is. Hulle vee en besittings, ja, al hulle diere – sal dit nie aan ons behoort nie? Ons moet net instem, dan sal hulle by ons bly.” Hulle het toe na Gamor en sy seun Sigem geluister – almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp. Elke manlike persoon is besny, almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp. Maar op die derde dag, toe hulle in pyn verkeer, het die twee seuns van Jakob, Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat, ongehinderd die dorp oorval en al die manlike persone doodgemaak. Ook Gamor en sy seun Sigem het hulle met die skerpte van die swaard doodgemaak. Hulle het Dina uit Sigem se huis geneem en weggegaan. Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes toegesak en die dorp geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het. Hulle kleinvee, beeste en donkies en alles wat in die dorp en in die veld was, het hulle gevat. Al hulle rykdom, al hulle kinders en vroue, het hulle weggevoer en alles wat binnenshuis was, buitgemaak. Jakob het vir Simeon en Levi gesê: “Julle het my in die ongeluk gestort deur my veragtelik te maak by die inwoners van die land, by die Kanaäniete en Feresiete. Ek het maar min mense; as hulle teen my saamtrek en my aanval, sal ek uitgedelg word, ek en my huis.” Hulle het egter gesê: “Moes hy dan ons suster soos 'n hoer behandel?” God het vir Jakob gesê: “Maak gereed, trek op na Bet-El en woon daar. Bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op vlug was voor jou broer Esau.” Jakob sê toe vir sy huis en almal wat by hom was: “Verwyder die vreemde gode wat in julle midde is en reinig julle; trek ander klere aan. Kom ons maak gereed en trek op na Bet-El, sodat ek daar 'n altaar kan bou vir die God wat my geantwoord het op die dag toe ek in die nood was, en by my was op die pad wat ek gegaan het.” Hulle het toe al die vreemde gode wat hulle by hulle gehad het, vir Jakob gegee, ook die ringe wat aan hulle ore was. Hy het dit onder die groot terebintboom wat by Sigem is, weggesteek. Hulle het toe weggetrek, en 'n verskrikking van God af het oor die dorpe rondom hulle geheers, sodat hulle nie die seuns van Jakob agtervolg het nie. Toe Jakob by Lus, dit is Bet-El, in die land Kanaän aankom, hy en al die mense wat by hom was, het hy daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, omdat God Hom daar aan hom geopenbaar het toe hy op vlug was voor sy broer. Debora, die oppasser van Rebekka, is daar oorlede. Sy is begrawe onderkant Bet-El, onder die eikeboom. Hulle het dit die Eikeboom van Gehuil genoem. God het weer aan Jakob verskyn by sy aankoms uit Paddan-Aram, en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob. Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, dit sal jou naam wees.” So het Hy hom die naam Israel gegee. Verder het God vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, 'n skare van nasies, sal van jou afstam; selfs konings sal uit jou liggaam voortkom. Die land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, aan jou gee Ek dit; aan jou nageslag ná jou gee Ek die land.” Hierna het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gepraat het. Jakob het toe op die plek waar Hy met hom gepraat het, 'n gedenksteen, 'n gedenksteen van klip, opgerig en 'n •drankoffer daaroor uitgegooi. Hy het ook olie daarop gegooi. Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem. Hulle het van Bet-El af weggetrek, maar daar was nog 'n hele ent pad oor om by Efrata uit te kom, toe Ragel geboorte gegee het. Sy het 'n moeilike bevalling gehad. Terwyl sy so swaar gekry het met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie, want ook hierdie een is 'n seun vir jou.” Terwyl haar lewe wegvloei, want sy was sterwend, het sy hom die naam Ben-Oni gegee. Sy vader het hom egter Benjamin genoem. So het Ragel gesterf; en sy is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig. Dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe. Israel het toe verder getrek en sy tent opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in dié streek gebly het, het Ruben by sy vader se byvrou Bilha gaan slaap. Israel het daarvan te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea: Ruben, Jakob se eersgeborene, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as •vreemdelinge gewoon het. Isak het honderd-en-tagtig jaar lank geleef. Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe. Hier volg die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom: Esau het sy vroue geneem uit die vroue van Kanaän – Ada, die dogter van Elon, die Hetiet; Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibon, 'n Hewiet; Basemat, die dogter van Ismael, die suster van Nebajot. Ada het Elifas vir Esau in die wêreld gebring, en Basemat het Reüel in die wêreld gebring. Oholibama het Jeüs, Jalam en Korag in die wêreld gebring. Dit is die seuns van Esau wat in die land Kanaän gebore is. Esau het sy vroue, sy seuns en dogters en al die mense van sy huis geneem, ook sy vee, al sy ander diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, en gegaan na 'n gebied weg van sy broer Jakob af. Hulle besittings was immers te veel om saam te kon woon. Vanweë hulle diere, kon die land waar hulle as •vreemdelinge gewoon het, hulle nie dra nie. Esau het in die Seïrberge gaan woon. Esau is Edom. Hier volg dan die familiegeskiedenis van Esau, die stamvader van die Edomiete, in die Seïrberge. Dit was die name van Esau se seuns: Elifas, die seun van Ada, Esau se vrou; Reüel, die seun van Basemat, Esau se vrou. Elifas se seuns was: Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Timna was 'n byvrou van Elifas, die seun van Esau; sy het Amalek vir Elifas in die wêreld gebring. Hulle was nakomelinge van Ada, Esau se vrou. Dit was die seuns van Reüel: Nagat, Serag, Samma en Missa. Hulle was nakomelinge van Basemat, Esau se vrou. Dit was die seuns van Oholibama, Esau se vrou en dogter van Ana, die dogter van Sibon: Sy het Jeüs, Jalam en Korag vir Esau in die wêreld gebring. Hier volg die stamhoofde van Esau se nageslag. Die nageslag van Elifas, Esau se eersgeborene, was: stamhoof Teman, stamhoof Omar, stamhoof Sefo, stamhoof Kenas, stamhoof Korag, stamhoof Gatam, en stamhoof Amalek. Hulle was stamhoofde van Elifas in die land Edom. Dit was die nakomelinge van Ada. Dit was die nakomelinge van Reüel, Esau se seun: stamhoof Nagat, stamhoof Serag, stamhoof Samma, en stamhoof Missa. Hulle was stamhoofde van Reüel in die land Edom. Dit was die nakomelinge van Basemat, Esau se vrou. Dit was die nakomelinge van Oholibama, Esau se vrou: stamhoof Jeüs, stamhoof Jalam, en stamhoof Korag. Dit was stamhoofde van Oholibama, Esau se vrou. Dit was dan die nakomelinge van Esau – dit is Edom – en dit was hulle stamhoofde. Dit was die nakomelinge van Seïr, die Goriet, inwoners van die land: Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan. Dit was die stamhoofde van die Goriete, die nageslag van Seïr, in die land Edom. Lotan se seuns was Gori en Hemam; Lotan se suster was Timna. Dit was Sobal se nageslag: Alwan, Managat, Ebal, Sefo en Onam. Dit was Sibon se nageslag: Aja en Ana. (Dit is die Ana wat op warmbronne afgekom het in die woestyn toe hy die donkies van sy vader Sibon daar laat wei het.) Dit was die nageslag van Ana: Dison en Oholibama, die dogter van Ana. Dit was die nageslag van Dison: Gemdan, Esban, Jitran en Keran. Dit was die nageslag van Eser: Bilhan, Saäwan en Akan. Dit was die nageslag van Disan: Us en Aran. Hier volg die stamhoofde van die Goriete: stamhoof Lotan, stamhoof Sobal, stamhoof Sibon, stamhoof Ana, stamhoof Dison, stamhoof Eser, en stamhoof Disan. Dit was die stamhoofde van die Goriete, naamlik hulle stamhoofde in die land Seïr. Dit is die konings wat in die land Edom regeer het voordat 'n koning oor die Israeliete regeer het: Bela, seun van Beor, het koning geword in Edom, en die naam van sy dorp was Dinhaba. Bela het gesterf, en in sy plek het Jobab, seun van Serag, uit Bosra, koning geword. Jobab het gesterf, en in sy plek het Gusam, uit die gebied van die mense van Teman, koning geword. Gusam het gesterf, en in sy plek het Hadad, seun van Bedad, wat die Midianiete in die gebied van Moab verslaan het, koning geword; die naam van sy dorp was Awit. Hadad het gesterf, en in sy plek het Samla, uit Masreka, koning geword. Samla het gesterf, en in sy plek het Saul, uit Regoboot-Hannahar koning geword. Saul het gesterf, en in sy plek het Baäl-Ganan, seun van Agbor, koning geword. Baäl-Ganan, seun van Agbor, het gesterf, en in sy plek het Hadar koning geword; die naam van sy dorp was Paü. Sy vrou se naam was Mehetabel, dogter van Matred, dogter van Me-Sahab. Hier volg die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle grootfamilies, met hulle name, volgens hulle woonplekke: stamhoof Timna, stamhoof Alwa, stamhoof Jetet, stamhoof Oholibama, stamhoof Ela, stamhoof Pinon, stamhoof Kenas, stamhoof Teman, stamhoof Mibsar, stamhoof Magdiël, en stamhoof Iram. Dit was die stamhoofde van Edom, volgens hulle woonplekke, in die gebied van hulle erfgrond. Dit was dan Esau, die voorvader van die Edomiete. Jakob het gewoon in die land waar sy vader 'n •vreemdeling was, in die land Kanaän. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob: Josef was as sewentienjarige seun 'n skaapwagter by die kleinvee saam met sy broers. Hy was as 'n jong seun saam met die seuns van Bilha en Silpa, sy vader se vroue. Josef het vir hulle vader die slegte gerugte oor hulle gebring. Israel was lief vir Josef, meer as vir al sy ander seuns, want hy was vir hom die seun van sy ouderdom. Hy het vir Josef 'n lang rok met moue gemaak. Sy broers het opgemerk dat hulle vader lief was vir hom, meer as vir al sy broers. Hulle het 'n weersin in hom gekry, en kon nie vriendelik met hom praat nie. Josef het 'n droom gehad, en hy het dit vir sy broers vertel. Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry. Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het! Kyk, ons was besig om gerwe te bind in 'n stuk land, toe my gerf skielik regop kom en ook bly staan. En kyk, julle gerwe kom toe daar rondom myne saam en buig diep voor my gerf!” Sy broers het vir hom gesê: “Gaan jy regtig oor ons koning wees? Gaan jy regtig oor ons heers?” Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry weens sy drome en sy woorde. Hy het nog 'n ander droom gehad, en het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het sowaar weer 'n droom gehad! Kyk, die son en die maan en elf sterre het diep voor my gebuig!” Toe hy dit vir sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom tereggewys en vir hom gesê: “Wat is hierdie droom wat jy gehad het? Moet ons, ek en jou ma en jou broers, regtig kom en teen die grond diep voor jou neerbuig?” Sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou. Sy broers het gegaan om hulle vader se kleinvee by Sigem te laat wei. Toe sê Israel vir Josef: “Laat jou broers nie die vee by Sigem wei nie? Kom, dan stuur ek jou na hulle toe.” Josef het hom geantwoord: “Dit is goed so.” Hy sê toe vir hom: “Gaan kyk asseblief of dit goed gaan met jou broers en met die kleinvee, en bring dan vir my nuus.” So het hy hom uit die vallei by Hebron gestuur, en hy het by Sigem aangekom. 'n Man het hom daar gekry; kyk, hy was aan die ronddwaal in die veld. Die man vra hom toe: “Wat soek jy?” Hy het geantwoord: “Ek is op soek na my broers. Sê my asseblief waar hulle die vee laat wei.” Die man sê toe: “Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het gehoor hulle sê, ‘Kom ons gaan na Dotan.’ ” Josef is toe agter sy broers aan, en hy het hulle by Dotan gekry. Hulle het hom van ver af gesien. Voordat hy naby hulle was, het hulle arglistig teen hom saamgespan om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom daardie bobaasdromer aan! Kom dan nou, laat ons hom vermoor en in een van die opgaarputte gooi. Ons sê dan 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome!” Ruben het dit egter gehoor en hy het hom uit hulle hand gered. Hy het gesê: “Ons mag nie 'n mens doodslaan nie.” Ruben het daarby vir hulle gesê: “Moenie bloed vergiet nie. Gooi hom in hierdie opgaarput in die woestyn; maar moenie 'n hand aan hom slaan nie.” Dit was sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te neem. Toe Josef by sy broers aankom, het hulle Josef se rok uitgetrek, die lang rok met moue wat hy aangehad het. Hulle het hom gevat en hom in die opgaarput gegooi. Die put was leeg – daar was nie water in nie. Hulle het gaan sit om brood te eet, en toe hulle opkyk, sien hulle daar kom 'n karavaan van Ismaeliete uit Gilead aan. Hulle kamele was gelaai met gom, balsem en hars. Hulle was op pad om dit na Egipte af te neem. Juda sê toe vir sy broers: “Wat wen ons as ons ons broer vermoor en dan nog sy bloed moet bedek? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie ons hand aan hom slaan nie; hy is immers ons broer, ons eie vlees.” Sy broers het na hom geluister. Toe die Midianitiese manne, die handelaars, daar verbykom, het hulle Josef opgetrek, hom uit die opgaarput gehaal en hom vir twintig silwerstukke aan die Ismaeliete verkoop, en dié het Josef na Egipte geneem. Toe Ruben terugkeer na die opgaarput, kyk, toe is Josef nie meer in die opgaarput nie. Hy het sy klere geskeur en na sy broers teruggegaan. Hy sê toe: “Die seun is nie daar nie! En ek, wat gaan ek nou doen? ” Hulle het Josef se rok geneem, 'n bokram geslag en die rok in die bloed gedoop. Toe stuur hulle die lang rok met moue vooruit en laat dit na hulle vader neem. Hulle het gesê: “Dit is wat ons gevind het. Stel tog vas: Is dit u seun se rok of nie?” Hy het dit herken en gesê: “Dit is my seun se rok! 'n Roofdier het hom opgevreet! Josef is sonder twyfel verskeur!” Jakob het sy klere geskeur en 'n roukleed om sy heupe gebind. Hy het baie lank oor sy seun gerou. Al sy seuns en dogters het opgestaan om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: “Nee, al treurend sal ek na my seun in die •doderyk afgaan.” So het sy vader oor hom gehuil. Die Midianiete het hom in Egipte verkoop aan Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao, en hoof van die lyfwag. In daardie tyd het Juda laer af getrek, weg van sy broers, en sy tente opgeslaan tot hy gekom het by 'n man van Adullam met die naam Gira. Daar het Juda 'n Kanaänitiese man, met die naam Sua, se dogter gesien. Hy het haar as vrou geneem en by haar ingegaan. Sy het swanger geraak en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom die naam Er gegee. Sy het weer swanger geraak en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom die naam Onan gegee. Sy het weer 'n keer aan 'n seun geboorte gegee en hom die naam Sela gegee. Juda was in Kesib toe sy aan hom geboorte gegee het. Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem met die naam Tamar. Maar Er, Juda se eersgeborene, was sleg in die oë van die Here, en die Here het hom laat sterf. Toe sê Juda vir Onan: “Gaan in by jou broer se vrou en doen jou plig as swaer teenoor haar, en vestig vir jou broer 'n nageslag!” Maar Onan het geweet dat die nageslag nie sy eie sou wees nie. Daarom het hy, wanneer hy by sy broer se vrou ingegaan het, sy saad op die grond gestort, om nie vir sy broer 'n nageslag te gee nie. Wat hy gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook hom laat sterf. Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan bly as 'n weduwee in die huis van jou pa totdat my seun Sela groot is.” Want, het hy gedink, anders sterf hy ook soos sy broers. Tamar het toe in die huis van haar vader gaan bly. Intussen het baie dae verloop. Juda se vrou, die dogter van Sua, het gesterf. Nadat Juda klaar gerou het, het hy en sy vriend Gira, uit Adullam, opgegaan na die skeerders van sy kleinvee in Timna. Daar is aan Tamar berig gebring: “Kyk, jou skoonpa gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.” Sy trek toe die klere van haar weduweeskap uit, bedek haar gesig met 'n sluier en vermom haar. Sy het by die ingang van Enajim, wat langs die pad na Timna is, gaan sit; want sy het gesien dat Sela grootgeword het, maar sy is nie vir hom as vrou gegee nie. Toe Juda haar sien, het hy haar as 'n prostituut beskou, want sy het haar gesig bedek. Hy het op die pad na haar afgedraai en gesê: “Kom, ek wil by jou ingaan!” Hy het immers nie besef dat dit sy skoondogter was nie. Sy vra toe: “Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?” Sy antwoord was: “Ek sal self vir jou 'n boklam uit my kleinvee stuur.” Maar sy het gesê: “As jy vir my 'n pand gee totdat jy dit stuur, ja.” Hy vra toe: “Wat is die pand wat ek vir jou moet gee?” Sy het geantwoord: “Jou rolseël en koord en die staf in jou hand.” Hy het dit vir haar gegee en by haar ingegaan, en sy het van hom swanger geword. Sy het opgestaan en weggegaan. Sy het haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek. Juda het toe die boklam saam met sy vriend uit Adullam gestuur om die pand by die vrou te kry. Maar hy kon haar nie kry nie. Hy het vir die manne van haar plek gevra: “Waar is die prostituut wat in Enajim langs die pad was?” Maar hulle het gesê: “Hier was nie 'n prostituut nie.” Hy keer toe terug na Juda en sê: “Ek kry haar nie, en die manne van die plek het ook gesê, ‘Hier was nie 'n prostituut nie.’ ” Toe sê Juda: “Laat sy dit hou, anders word ons verag. Kyk, ek het wel hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gekry nie.” Ongeveer drie maande later word daar toe aan Juda berig gebring: “Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en erger nog, kyk, sy is swanger van die hoerery.” Juda sê toe: “Bring haar uit, sodat sy verbrand kan word.” Terwyl sy uitgebring word, stuur sy toe 'n boodskap vir haar skoonvader: “By die man aan wie hierdie goed behoort, het ek swanger geraak.” Sy het ook gesê: “Stel tog vas aan wie hierdie rolseël en koord en staf behoort!” Juda het dit herken en gesê: “Sy is reg, eerder as ek; want ek het haar mos nie vir my seun Sela gegee nie.” Hy het nie weer met haar gemeenskap gehad nie. En toe dit tyd word vir haar bevalling, kyk, toe is daar 'n tweeling in haar moederskoot! Terwyl sy geboorte gee, steek een 'n handjie uit. Die vroedvrou neem dit toe en bind 'n stukkie karmosynrooi tou aan sy hand, met die woorde: “Hierdie een het eerste uitgekom.” Maar toe hy sy handjie terugtrek, daar kom sy broer uit! Toe sê sy: “Wat 'n deurbraak het jy ter wille van jouself gemaak!” Hulle het hom Peres genoem. Daarna het sy broer uitgekom, die een wat die stukkie karmosynrooi tou aan sy handjie gehad het. Hulle het hom Serag genoem. Josef is afgebring na Egipte. Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao en die hoof van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop by die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. Die Here was met Josef, en hy was 'n suksesvolle man. Hy was werksaam in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar. Toe sy eienaar merk dat die Here met Josef is, en dat die Here alles wat hy doen, laat slaag deur sy hand, het Josef guns gevind in sy oë en sy persoonlike bediende geword. Hy het hom aangestel oor sy huishouding, en alles wat aan hom behoort, het hy onder Josef se beheer geplaas. Vandat hy hom in sy huishouding en oor alles wat hy besit, aangestel het, het die Here die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef. Die seën van die Here het gerus op alles wat hy besit, in die huis en in die veld. Hy het alles wat aan hom behoort, in Josef se hande gelaat. Met hom daar, het hy hom met niks bemoei nie, behalwe met die kos wat hy eet. Josef het 'n mooi voorkoms gehad en was besonder aantreklik. Ná verloop van tyd het die vrou van sy eienaar Josef reguit aangekyk en gesê: “Kom lê by my!” Maar hy het geweier en vir die vrou van sy eienaar gesê: “Kyk, met my hier bemoei my heer hom met niks in die huis nie. Alles wat hy besit, het hy in my hande gelaat. Hy is in hierdie huis nie belangriker as ek nie. Hy het van my niks weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?” Alhoewel sy dag ná dag met Josef gepraat het, het hy nie aan haar gehoor gegee om langs haar te gaan lê en by haar te wees nie. Toe hy egter op 'n sekere dag in die huis ingaan om sy werk te doen en daar niemand van die huiswerkers in die huis was nie, pak sy hom aan sy kleed beet en sê: “Kom lê by my!” Hy het egter sy kleed in haar hand agtergelaat en gevlug; hy het na buite uitgegaan. Toe sy sien dat hy sy kleed in haar hand agtergelaat en na buite gevlug het, roep sy haar huiswerkers en sê vir hulle: “Sien julle! Hy het vir ons 'n Hebreeuse man gebring sodat hy hom met ons kan vermaak. Hy het na my toe ingekom om by my te lê, maar ek het hard geskreeu. Toe hy hoor dat ek uitroep en skreeu, het hy sy kleed hier langs my laat lê en gevlug; hy het buitentoe gegaan.” Sy het sy kleed langs haar neergesit totdat sy eienaar tuisgekom het. Sy het dieselfde woorde vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy vir ons gebring het, het na my toe gekom om hom met my te vermaak! Toe ek hard uitroep en skreeu, het hy sy kleed langs my agtergelaat en na buite gevlug.” Toe sy eienaar die woorde van sy vrou hoor, dit wat sy vir hom gesê het, “Dít is die dinge wat jou slaaf aan my gedoen het,” het hy kwaad geword. Josef se eienaar het hom gevat en hom in die gevangenis gegooi, die plek waar die koning se gevangenes aangehou is. Hy was daar in die gevangenis, maar die Here was met Josef en het in sy troue liefde na hom uitgereik. Hy het aan hom guns geskenk in die oë van die hoof van die gevangenis. Die hoof van die gevangenis het al die gevangenes wat in die gevangenis was, onder Josef se beheer geplaas. Alles wat daar gedoen moes word, het hy gedoen. Die hoof van die gevangenis het nie omgesien na enigiets wat onder Josef se beheer was nie, want die Here was met hom; en wat hy gedoen het, het die Here laat slaag. Ná verloop van tyd het die skinker van die koning van Egipte en die bakker 'n misstap begaan teenoor hulle heer, die koning van Egipte. Die farao was woedend vir sy twee paleisamptenare, vir die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Hy het hulle onder bewaking gestel in die huis van die hoof van die lyfwag, by die gevangenis, die plek waar Josef gevange gehou is. Die hoof van die lyfwag het Josef by hulle aangestel, en hy het hulle persoonlike bediende geword. Hulle was lank onder bewaking. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte wat gevange gehou is in die gevangenis het al twee, in dieselfde nag, 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie betekenis. Toe Josef die oggend by hulle kom en hulle sien, merk hy tot sy verbasing hulle is bedruk. Hy vra toe vir die farao se paleisamptenare wat saam met hom onder bewaking was in die huis van sy eienaar: “Waarom het julle vandag sulke somber gesigte?” Hulle sê toe vir hom: “Ons het gedroom, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie.” Toe sê Josef vir hulle: “Hoort verklarings nie by God nie? Vertel dit tog vir my!” Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef. Hy het vir hom gesê: “Kyk, in my droom was daar 'n wingerdstok voor my. Aan die wingerdstok was daar drie lote. Die wingerd het net gebot, toe ontwikkel die bloeisels al en word die klein trossies ryp druiwe. Die farao se beker was in my hand. Ek neem toe die druiwe en pers dit uit in die farao se beker. Toe sit ek die beker in die farao se hand.” Josef het vir hom gesê: “Dit is die verklaring daarvan: Die drie lote is drie dae. Nog drie dae, dan sal die farao jou weer jou kop laat oplig en jou in jou amp herstel. Jy sal die farao se beker in sy hand plaas soos dit vroeër die gewoonte was toe jy nog sy skinker was. Maar dink aan my wanneer dit met jou goed gaan. Bewys asseblief trou aan my en maak melding van my by die farao. Kry my so uit hierdie huis uit. Want ek is inderdaad ontvoer uit die land van die Hebreërs. Ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in die put moes sit nie.” Toe die hoof van die bakkers sien dat hy dit gunstig verklaar het, sê hy vir Josef: “Ook ek was in my droom. Kyk, daar was drie mandjies met witbrood op my kop. In die boonste mandjie was daar allerhande eetgoed wat 'n bakker voorberei het vir die farao. Maar die voëls het dit uit die mandjie op my kop geëet.” Josef het geantwoord en gesê: “Dit is die verklaring: Die drie mandjies is drie dae. Nog drie dae, dan lig die farao jou kop – van jou af. Hy sal jou aan 'n houtpaal hang, en die voëls sal jou vleis van jou afeet.” Op die derde dag, op die farao se verjaarsdag, het hy 'n feesmaal aangebied vir al sy dienaars. Hy het toe daar tussen sy dienaars die hoof van die skinkers se kop en die hoof van die bakkers se kop laat lig: Hy het die hoof van die skinkers herstel in sy amp as skinker, en hy het die beker in die farao se hand geplaas. Die hoof van die bakkers het hy laat ophang, soos Josef dit vir hulle verklaar het. Die hoof van die skinkers het egter nie weer aan Josef gedink nie; hy het hom vergeet. Ná verloop van twee jaar het die farao gedroom: Kyk, hy staan langs die Nyl, en meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat lelik lyk en maer is, kom toe ná hulle op uit die Nyl, en hulle gaan staan langs die koeie op die wal van die Nyl. Die koeie wat lelik lyk en maer is, vreet toe die sewe koeie op wat mooi lyk en vet is. Toe word die farao wakker. Hy het aan die slaap geraak en 'n tweede keer gedroom: Kyk, daar was sewe koringare, vet en mooi, aan een halm, en meteens spruit daar ná hulle sewe koringare uit, maer en verskroei deur die oostewind. En toe sluk die maer are die sewe vet en vol are in. Die farao het wakker geword en kyk, dit was 'n droom! Die oggend was sy gees onrustig, en hy ontbied toe al die waarsêerpriesters en wyses van Egipte. Die farao vertel toe vir hulle sy drome; maar niemand kon dit vir die farao verklaar nie. Die hoof van die skinkers praat toe met die farao: “My eie misstappe moet ek vandag in herinnering roep. Die farao het hom bloedig vererg vir sy dienaars en het my onder bewaking geplaas in die huis van die hoof van die lyfwag, vir my en die hoof van die bakkers. Ons het in dieselfde nag gedroom, ek en hy; elkeen het sy eie droom met 'n besondere betekenis gedroom. By ons was daar 'n Hebreeuse jong man, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het dit vir hom vertel, en hy het ons drome vir ons verklaar. Vir elkeen het hy dit volgens sy droom verklaar. En soos hy dit vir ons verklaar het, het dit gebeur: Vir my het die farao in my amp herstel, maar hom het hy opgehang.” Die farao het Josef toe laat roep, en hulle het hom gou uit die put gehaal. Nadat hy geskeer en ander klere aangetrek het, het hy na die farao gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie. Ek het van jou gehoor, naamlik dat jy net 'n droom hoef te hoor om dit te verklaar.” Josef het die farao geantwoord: “Dit berus nie by my nie! Net God kan 'n gunstige antwoord gee vir die farao.” Toe sê die farao vir Josef: “Kyk, in my droom staan ek op die wal van die Nyl. Meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat treurig en baie lelik lyk, kom toe ná hulle op uit die Nyl. Ek het in die hele Egipteland nog nooit koeie gesien wat so lelik soos hulle is nie. En toe vreet die maer en lelike koeie die eerste sewe vet koeie op! Toe hulle in hulle ingewande was, kon 'n mens nie eers sien dat hulle in hulle ingewande ingegaan het nie. Hulle het so sleg gelyk soos aan die begin. Toe het ek wakker geword. “Toe sien ek in my droom: Kyk, sewe koringare, vol en mooi, staan op uit een halm. Meteens spruit daar ná hulle sewe maer koringare uit, verskroei deur die oostewind, en toe sluk die maer are die sewe mooi are in! Ek het dit vir die waarsêerpriesters vertel, maar niemand kon dit vir my verduidelik nie.” Josef sê toe vir die farao: “Die drome van die farao – dit is maar een droom. Dit wat God gaan doen, het Hy aan die farao bekend gemaak. Die sewe mooi koeie is sewe jare, en die sewe mooi koringare is ook sewe jare. Dit is een droom. Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare, en ook die sewe maer are, verskroei deur die oostewind. Dit sal sewe jaar van hongersnood wees. Dit is soos ek vir die farao gesê het: Wat God gaan doen, het Hy die farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. Maar daarna breek sewe jaar van hongersnood aan, en al die oorvloed in Egipteland sal vergete wees. Die hongersnood sal die land uitmergel. Die oorvloed in die land sal vanweë die hongersnood wat daarop volg, nie meer onthou word nie. Ja, dit sal baie erg wees. En wat die herhaling van die droom aan die farao op twee maniere betref: Omdat die saak van God se kant af vasstaan, is God haastig om dit gou te doen. “Daarom moet die farao 'n man met insig en wysheid kies, en hom oor Egipteland aanstel. Die farao moet optree en opsigters aanstel oor die land, en hy moet in die sewe jaar van oorvloed een vyfde van Egipteland se oes opeis. Hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, bymekaarmaak. Hulle moet op gesag van die farao voedsel in die dorpe opgaar en bewaar. Die voedsel sal as voorraad vir die land dien vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipteland sal heers, sodat die land nie deur hongersnood ten gronde gaan nie.” Die saak was goed in die oë van die farao en al sy dienaars; en die farao het vir sy dienaars gevra: “Sal ons so iemand vind, 'n man in wie die Gees van God is?” Toe sê die farao vir Josef: “Noudat God dit alles aan jou bekend gemaak het – daar is niemand so verstandig en wys soos jy nie – sal jy self hoof van my hofhouding word, en aan jou bevele sal my hele volk gehoorsaam wees. Net wat die troon betref, is ek jou meerdere.” Die farao het vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.” Toe haal die farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan Josef se vinger. Hy het hom linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang. Hy het Josef laat ry op die tweede strydwa wat aan hom behoort, en daar is voor hom uitgeroep: “Gee pad!” So het hy hom oor die hele Egipteland aangestel. Die farao het vir Josef gesê: “Ek is die farao, maar sonder om jou in ag te neem, mag niemand in die hele Egipteland 'n hand of 'n voet lig nie.” Die farao het Josef die naam Safenat-Paneag gegee, en hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, aan hom as vrou gegee. Josef het Egipteland deurreis. Hy was dertig jaar oud toe hy in diens van die farao getree het, die koning van Egipte. Hy het van die farao af vertrek en die hele Egipteland deurkruis. Die land het in die sewe jaar van oorvloed volop voedsel gelewer. Hy het al die voedsel wat daar in sewe jaar in Egipteland was, bymekaar gemaak. Hy het die voedsel in die dorpe ingebring. Die voedsel van die dorp se landerye wat daar rondom was, het hy daar ingebring. Josef het graan opgegaar soos die sand van die see, besonder baie, totdat hy opgehou het om dit te tel; want dit was ontelbaar. Vir Josef is twee seuns gebore voordat die jare van hongersnood aangebreek het – seuns wat Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Josef het die eersgeborene Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my al my swaarkry laat vergeet, en ook my hele familie”. Sy tweede seun het hy Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”. Die sewe jaar van oorvloed wat daar in Egipteland was, het tot 'n einde gekom, en sewe jaar van hongersnood het aangebreek, net soos Josef gesê het. Daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood. Toe die hele Egipteland ook honger ervaar, en die volk by die farao om hulp roep vir brood, het die farao vir al die Egiptenare gesê: “Gaan na Josef! Wat hy vir julle sê, moet julle doen.” Toe daar hongersnood oor die hele land was, het Josef al die voorraadskure oopgemaak en graan aan die Egiptenare verkoop. Die hongersnood was straf in Egipteland. Die hele wêreld het na Egipte gekom om by Josef graan te koop, want die hongersnood was straf oor die hele aarde. Jakob het agtergekom dat daar graan in Egipte was. Jakob sê toe vir sy seuns: “Waarom kyk julle net na mekaar?” Hy het ook gesê: “Kyk, ek het gehoor dat daar graan is in Egipte. Gaan af daarheen en koop vir ons daar graan, sodat ons kan leef en nie sterf nie!” Tien broers van Josef het toe afgegaan om graan te koop in Egipte; maar vir Benjamin, Josef se eie broer, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie, want, het hy gedink, netnou tref 'n noodlottige ramp hom. So het Israel se seuns dan in Egipte aangekom om graan te koop, saam met ander wat ook gekom het, want daar was hongersnood in die land Kanaän. Josef was die heerser oor die land. Hy was die een wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Josef se broers het daar aangekom, en hulle het diep voor hom neergebuig, met hulle gesigte na die grond. Toe Josef sy broers sien, het hy hulle herken. Hy het hom egter vreemd gehou teenoor hulle en hulle streng aangespreek. Hy het vir hulle gevra: “Waarvandaan kom julle?” Hulle het geantwoord: “Van die land Kanaän af, om kos te koop.” Al het Josef sy broers herken, het hulle hom op hulle beurt nie herken nie. Josef onthou toe die drome wat hy oor hulle gedroom het, en sê vir hulle: “Julle is spioene! Dit is net om die kwesbaarste deel van die land te sien dat julle gekom het.” Maar hulle antwoord hom: “Nee, my heer; u dienaars het net gekom om kos te koop. Ons is almal seuns van een man. Ons is eerlike mense. U dienaars is nie spioene nie.” Hy sê toe vir hulle: “Nee! Dit is maar net om die kwesbaarste deel van die land te sien dat julle gekom het.” Hulle het geantwoord: “U dienaars was twaalf; ons is broers, die seuns van een man in die land Kanaän. Maar kyk, die jongste is vandag by ons vader; en een is nie meer daar nie.” Josef sê egter vir hulle: “Dit is soos ek vir julle gesê het: Julle is spioene. Hierdeur sal julle getoets word: So waar as die farao leef, julle sal nie hiervandaan vertrek tensy julle jongste broer hierheen kom nie. Stuur een van julle, sodat hy julle broer gaan haal. Maar julle bly in aanhouding, sodat julle woorde getoets kan word of julle by die waarheid hou. En indien nie – so waar as die farao leef – dan is julle spioene.” Hy het hulle toe drie dae lank onder bewaking gehou. Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “As julle dit doen, sal julle leef. Vir God het ek ook ontsag. As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die plek waar julle bewaak word. Maar julle, gaan bring graan weg vir die honger mense by julle huise. Julle moet julle jongste broer na my toe bring, sodat julle woorde as betroubaar bewys word en julle nie sterf nie.” Hulle het toe so gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: “Wel, ons is beslis skuldig oor ons broer wie se sielenood ons gesien het toe hy ons om genade gesmeek, maar ons nie geluister het nie. Daarom het hierdie nood ons nou oorval.” Ruben het gereageer en vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie 'n misstap teen die kind begaan nie’? Maar julle het nie geluister nie. Ook sy bloed, kyk, dit word nou geëis!” Hulle het self nie besef dat Josef verstaan nie, want daar is tussen hulle getolk. Hy het van hulle af weggedraai en gehuil. Toe hy na hulle terugkom, het hy met hulle gepraat en vir Simeon tussen hulle uitgehaal en hom voor hulle oë vasgebind. Josef het toe opdrag gegee dat hulle houers vol graan gemaak moet word, dat elkeen se silwer in sy sak teruggeplaas, en dat daar vir hulle padkos vir die reis gegee moet word. Hy het dit so vir hulle gedoen. Hulle het toe hulle graan op hulle donkies gelaai en daarvandaan vertrek. Een het sy sak oopgemaak om vir sy donkie voer te gee by die oornagplek. Hy sien toe sy silwer – en kyk, dit was bo in sy sak. Hy sê toe vir sy broers: “My silwer is teruggesit! Ja, hier is dit in my sak.” Hulle was verslae, en verskrik het hulle na mekaar gedraai: “Wat is dit wat God aan ons doen?” Toe hulle by Jakob, hulle vader, in die land Kanaän aankom, het hulle hom alles vertel wat hulle oorgekom het: “Die man, die heer van die land, het ons streng aangespreek. Hy het ons uitgemaak vir mense wat op die land spioeneer. Maar ons het vir hom gesê, ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. Ons was twaalf broers, die seuns van ons vader; die een is nie meer daar nie, en die jongste is vandag by ons vader in die land Kanaän.’ Die man, die heer van die land, het egter vir ons gesê, ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is: Laat bly een van julle broers by my. En vir die honger by julle huise – neem graan en gaan! Bring julle jongste broer na my toe, sodat ek kan weet dat julle nie spioene is nie, maar dat julle eerlike mense is. Julle broer sal ek dan vir julle gee, en dan mag julle deur die land trek.’ ” En toe, terwyl hulle besig is om hulle sakke leeg te maak, daar is elkeen se toegebinde silwer in sy sak! Toe hulle hulle toegebinde silwer sien, hulle en hulle vader, was hulle beangs. Jakob, hulle vader, het vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos! Josef is nie meer daar nie, en Simeon is nie meer daar nie, en Benjamin wil julle neem. Alles is teen my!” Ruben sê toe vir sy vader: “Pa kan maar my twee seuns doodmaak as ek hom nie na pa terugbring nie. Laat hom in my sorg; ek sal hom persoonlik na pa terugbring.” Maar hy antwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en net hy alleen het oorgebly. As 'n noodlottige ramp hom tref op die pad waarop julle gaan, sal julle my grys hare met verdriet in die •doderyk laat afgaan.” Die hongersnood was erg in die land. Toe die graan wat hulle uit Egipte gebring het, heeltemal opgeëet was, het hulle vader vir hulle gesê: “Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos.” Maar Juda het vir hom gesê: “Die man het ons uitdruklik gewaarsku, ‘Julle sal my gesig nie sien tensy julle broer by julle is nie.’ As pa nou net ons broer saam met ons stuur, kan ons gaan en vir pa kos koop. Maar as pa hom nie saamstuur nie, sal ons nie gaan nie. Want die man het vir ons gesê, ‘Julle sal my gesig nie sien tensy julle broer by julle is nie.’ ” Israel vra toe: “Waarom het julle my kwaad aangedoen deur vir die man te vertel dat julle nog 'n broer het?” Hulle het geantwoord: “Die man het uitdruklik oor ons en ons familie uitgevra: ‘Leef julle vader nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het aan hom net inligting verskaf wat betrekking het op hierdie sake. Hoe kon ons ooit weet dat hy sou sê, ‘Bring julle broer af hierheen’?” Daarop sê Juda vir sy vader Israel: “Stuur die jong man saam met my. Ons wil gereedmaak en gaan, sodat ons kan leef en nie sterf nie, ons sowel as pa en ons kinders. Ek sal self vir hom borg staan; van my hand kan pa hom eis. As ek hom nie na pa terugbring en voor pa laat staan nie, sal ek altyd teenoor pa skuldig staan. As ons nie so getalm het nie, dan was ons beslis nou al vir die tweede keer terug.” Toe sê hulle vader Israel vir hulle: “As dit so is, maak dan só: Neem van die keurprodukte van die land in julle kruike saam, en neem dit af daarheen as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem en 'n bietjie heuning, gom en hars, pistasieneute en amandels. Neem ook twee maal soveel silwer met julle saam, en die silwer wat bo in julle sakke teruggegee is, moet julle saam terugneem. Miskien was dit 'n misverstand. En neem julle broer; maak gereed en gaan terug na die man. Mag God, die Almagtige, gee dat julle barmhartigheid ervaar voor die man, en dat hy vir julle julle ander broer en Benjamin vrylaat. En ek – as ek kinderloos word, word ek kinderloos.” Die manne het toe die geskenk geneem. Hulle het twee maal soveel silwer met hulle saamgeneem, en ook vir Benjamin. Hulle het gereedgemaak, afgegaan na Egipte en by Josef aangemeld. Toe Josef vir Benjamin by hulle sien, sê hy vir die hoof van sy huishouding: “Neem die manne na die huis, slag 'n dier en berei dit voor, want hulle gaan vanmiddag saam met my eet.” Die man het gemaak soos Josef gesê het. Die man het toe die manne na Josef se huis gebring. Die manne was bang toe hulle na Josef se huis geneem word en het gesê: “Dit is oor die silwer wat die vorige keer in ons sakke teruggesit is dat ons hierheen gebring word. Dit is om ons te oorrompel en ons te oorval, om ons as slawe toe te eien, en ook ons donkies.” Hulle nader toe die hoof van Josef se huishouding en praat met hom by die ingang van die huis. “Asseblief, my heer,” sê hulle, “ons het die vorige keer regtig afgekom hierheen om kos te koop. Maar toe ons by die oornagplek aankom en ons sakke oopmaak, kyk, daar is elkeen se silwer bo in sy sak – ons silwer, die volle gewig daarvan! Ons het dit saam teruggebring. Ons het ook ander silwer saam afgebring om kos mee te koop. Ons weet nie wie het ons silwer in ons sakke gesit nie.” Hy sê toe: “Vrede vir julle! Moenie bang wees nie. Julle God, die God van julle vader, het vir julle 'n verborge skat in julle sakke geplaas. Julle silwer het by my uitgekom.” Daarop bring hy Simeon na hulle toe uit. Die man het die manne in Josef se huis ingeneem. Hy het water verskaf, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook vir hulle donkies voer gegee. Hulle het die geskenk gereedgekry met die oog op Josef se koms die middag, omdat hulle gehoor het dat hulle daar sou eet. Toe Josef by die huis kom, het hulle vir hom die geskenk wat by hulle was, in die huis ingebring, en diep voor hom neergebuig na die grond. Hy vra hulle toe hoe dit gaan, en sê daarna: “Hoe gaan dit met julle ou vader van wie julle gepraat het? Leef hy nog?” Hulle antwoord was: “Dit gaan goed met u dienaar, ons vader. Hy leef nog.” Toe kniel hulle en buig diep neer. Toe hy opkyk, sien hy sy broer Benjamin raak, die seun van sy moeder, en hy vra: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” Daarop sê hy: “Mag God jou genadig wees, my seun!” Josef is haastig uit, want hy was diep ontroer oor sy broer, en was op die punt om te huil. Hy gaan toe sy slaapkamer binne en huil daar. Nadat hy sy gesig gewas het, het hy uitgekom. Hy het hom bedwing en gesê: “Bedien die kos!” Hulle het hom, sy broers, en die Egiptenare wat by hom eet, almal afsonderlik bedien. Die Egiptenare kon immers nie saam met die Hebreërs eet nie, want dit is vir Egiptenare afstootlik. Toe hulle voor hom gaan sit, was die eersgeborene op die eersgeborene se plek, en die jongste op die jongste se plek. Die manne het mekaar verbaas aangekyk. Porsies is aan hulle bedien van wat aan Josef voorgesit was. Benjamin se porsie was vyf maal groter as almal se porsies. Hulle het gedrink en saam met hom dronk geword. Josef het die hoof van sy huishouding beveel: “Vul die manne se sakke met kos, soveel as wat hulle kan dra. Sit elkeen se silwer terug bo in sy sak. My beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit, saam met die silwer vir sy graan.” Hy het presies gedoen wat Josef gesê het. Die oggend toe dit lig word, is die manne weggestuur, hulle en hulle donkies. Hulle het die stad verlaat, maar was nog nie ver weg nie, toe sê Josef vir die hoof van sy huishouding: “Maak klaar, sit die manne agterna en wanneer jy hulle inhaal, moet jy vir hulle vra, ‘Waarom het julle goed met kwaad vergeld? Is dit nie waaruit my heer drink en waarmee hy altyd die toekoms voorspel nie? Julle het verkeerd opgetree met wat julle gedoen het!’ ” Hy het hulle toe ingehaal en hierdie woorde vir hulle gesê. Hulle sê toe vir hom: “Waarom sê my heer sulke woorde? U dienaars sal nooit so iets doen nie! Kyk, die silwer wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän vir u teruggebring. Hoe sal ons dan nou silwer of goud uit die huis van u heer steel? Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterf, en ons sal ook my heer se slawe word.” Hy het geantwoord: “Nou goed, soos julle sê, so sal dit wees: Die een by wie dit gevind word, sal my slaaf word; maar julle sal onskuldig wees.” Hulle het gou elkeen sy sak op die grond neergesit, en elkeen van hulle het sy sak oopgemaak. Hy het dit deursoek; by die oudste het hy begin en by die jongste geëindig. Die beker is toe in Benjamin se sak gevind! Toe skeur hulle hulle klere, laai elkeen sy donkie en keer terug na die stad. Toe Juda en sy broers by Josef se huis aankom, was hy nog daar. Hulle het voor hom op die grond neergeval. Josef het vir hulle gesê: “Wat is dit wat julle nou gedoen het? Besef julle nie dat 'n man soos ek altyd die toekoms moet voorspel nie?” Juda sê toe: “Wat kan ons vir my heer sê? Wat kan ons aanvoer? Hoe kan ons onsself regverdig? Dit is God wat die sondeskuld van u dienaars aan die lig gebring het. Kyk, ons is nou my heer se slawe, ons en ook die een by wie die beker gevind is.” Maar hy antwoord: “Ek sal so iets nooit doen nie. Die man by wie die beker gevind is, net hy sal my slaaf word. En julle, trek in vrede op na julle vader!” Juda gaan toe nader aan hom en sê: “Asseblief, my heer, laat u dienaar tog persoonlik met my heer praat. Moet u nie vir u dienaar vererg nie; u is immers soos die farao. My heer het sy dienaars gevra, ‘Het julle nog 'n vader of 'n broer?’ En ons het my heer geantwoord, ‘Ons het 'n ou vader en 'n jong broer, 'n kind van sy ouderdom. Sy eie broer is oorlede, en hy is al wat van sy moeder oorgebly het. Sy vader is lief vir hom.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘Bring hom af na my, dat ek hom onder oë kan kry.’ Ons het my heer geantwoord, ‘Die jong man kan nie sy vader verlaat nie. As hy sy vader verlaat, sal sy vader sterf.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle nie weer my gesig sien nie.’ Ons het daarna opgetrek na u dienaar, my vader, en hom die woorde van my heer meegedeel. Ons vader het gesê, ‘Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos!’ Maar ons het gesê, ‘Ons kan nie daarheen afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, kan ons gaan, want ons sal nie die man se gesig kan sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ En u dienaar, my vader, het vir ons gesê, ‘Julle weet self dat my vrou vir my net twee seuns in die wêreld gebring het. Die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: “Hy is sonder enige twyfel verskeur!” En ek het hom tot nou toe nie weer gesien nie. As julle nou hierdie een ook van my wegneem, en 'n noodlottige ramp tref hom, sal julle my grys hare deur teenspoed in die •doderyk laat afgaan.’ Daarom, as ek by u dienaar, my vader, aankom, en die jong man aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie – die oomblik dat hy sien die jong man is nie daar nie, sal hy sterf. U dienaars sal die grys hare van ons vader, u dienaar, met verdriet in die doderyk laat afgaan. Aangesien u dienaar borg gestaan het vir die jong man by my vader deur te sê, ‘As ek hom nie na u terugbring nie, sal ek altyd teenoor my vader skuldig staan,’ laat u dienaar asseblief dan nou in die plek van die jong man as slaaf van my heer agterbly. Maar die jong man, laat hy saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek, en die jong man is nie by my nie? Anders moet ek die ramp aanskou wat my vader tref.” Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland. Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’ Kyk, julle sien nou self, en my broer Benjamin sien dit ook, dat dit my eie mond is wat met julle praat. Vertel vir my pa van al die aansien wat ek in Egipte geniet, en van alles wat julle gesien het. Maak net gou en bring my pa af hierheen.” Toe val hy sy broer Benjamin om die nek en huil, en Benjamin het op sy skouer gehuil. Hy het al sy broers gesoen en by hulle gehuil. Daarna het sy broers met hom gepraat. Toe die nuus “Josef se broers het gekom!” die farao se paleis bereik, was dit goed in die oë van die farao en sy dienaars. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers, ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan dan na die land Kanaän. Kry julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe! Ek sal vir julle die beste deel van Egipteland gee, sodat julle die vettigheid van die land kan geniet.’ En jy self het die opdrag om vir hulle te sê, ‘Dit moet julle doen: Neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kinders en vroue, en gaan haal julle vader en kom! Moenie trane stort oor julle besittings nie, want die beste van die hele Egipteland sal daar wees vir julle.’ ” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het hulle, volgens die opdrag van die farao, van waens voorsien. Hy het ook vir hulle padkos vir die reis gegee. Hy het aan hulle almal, elkeen van hulle, 'n bykomende stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf stelle klere gegee. Net so het hy vir sy vader tien donkiehingste gestuur, gelaai met van die beste produkte uit Egipte, en ook tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kosvoorraad vir sy vader vir die reis. So het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie bang wees op die pad nie.” Hulle het toe van Egipte af opgetrek en in die land Kanaän by hulle vader Jakob aangekom. Hulle het hom ingelig, “Josef leef nog!” en ook dat hy heers oor die hele Egipteland. Maar dit het hom koud gelaat, want hy het hulle nie geglo nie. Hulle dra toe aan hom al Josef se woorde oor wat hy vir hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom op te laai, het Jakob, hulle vader, se gemoed opgeflikker. Israel sê toe: “Genoeg! My seun Josef leef nog! Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.” Israel en almal wat by hom hoort, het kamp opgebreek. Toe hulle by Berseba kom, het hy offers geslag vir die God van sy vader Isak. God het met Israel in naggesigte gepraat; Hy het gesê: “Jakob! Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om af te trek na Egipte nie, want Ek sal daar van jou 'n groot nasie maak. Ek self sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek self sal jou beslis ook weer laat optrek. En Josef, hy sal jou oë toedruk.” Jakob het gereedgemaak en vertrek uit Berseba. Die seuns van Israel het hulle vader Jakob, hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat die farao gestuur het om hom te vervoer. Hulle het ook hulle vee en hulle goedere wat hulle in die land Kanaän bekom het, geneem, en in Egipte aangekom, Jakob en sy hele nageslag saam met hom. Sy seuns en sy kleinseuns was saam met hom; sy dogters en sy kleindogters, sy hele nageslag het hy saam met hom na Egipte gebring. Hier volg die name van die nageslag van Israel wat in Egipte aangekom het; dit is Jakob en sy nakomelinge: Die eersgeborene van Jakob was Ruben. Die seuns van Ruben was Ganog, Pallu, Gesron en Karmi. Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou. Die seuns van Levi was Gerson, Kehat en Merari. Die seuns van Juda was Er, Onan, Sela, Peres en Serag. Er en Onan het in die land Kanaän gesterf; en Peres se seuns was Gesron en Gamul. Die seuns van Issaskar was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Die seuns van Sebulon was Sered, Elon en Jagleël. Dit was die seuns van Lea wat sy in Paddan-Aram vir Jakob in die wêreld gebring het, en ook sy dogter Dina – altesaam, seuns en dogters, drie-en-dertig persone. Die seuns van Gad was Sifjon en Gaggi, Suni en Esbon, Eri, Arodi en Areli. Die seuns van Aser was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en Serag was hulle suster. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit was die seuns van Silpa, wat Laban vir sy dogter Lea gegee het. Sy het hierdie nageslag vir Jakob in die wêreld gebring – sestien persone. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob, was Josef en Benjamin. Vir Josef is Manasse en Efraim in Egipte gebore, hulle wat Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Die seuns van Benjamin was Bela, Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit was die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is – altesaam veertien persone. Die seun van Dan was Gusim. Die seuns van Naftali was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit was die seuns van Bilha, wat Laban vir sy dogter Ragel gegee het. Sy het hulle vir Jakob in die wêreld gebring – altesaam sewe persone. Al die mense van Jakob wat na Egipte gekom het, al sy direkte afstammelinge, met die uitsondering van die vroue van Jakob se seuns, was altesaam ses-en-sestig persone. Die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was net twee. Al die persone van die huis van Jakob wat na Egipte gekom het, was sewentig. Juda het hy voor hom uit gestuur na Josef om vir hom die pad na Gosen te wys. Toe hulle in die Gosenstreek aankom, het Josef sy strydwa ingespan en opgetrek om sy vader Israel in Gosen te ontmoet. Toe hy by hom opdaag, val hy hom om die nek en huil lank op sy skouer. Israel sê toe vir Josef: “Ek kan nou maar sterf, noudat ek jou gesig gesien het, gesien het dat jy nog leef.” Josef het vir sy broers en sy familie gesê: “Ek wil optrek en die farao gaan inlig en vir hom sê, ‘My broers en my familie wat in die land Kanaän was, het na my toe gekom. Die manne is herders van kleinvee, ja, hulle was altyd veeboere. Hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het hulle saamgebring.’ As die farao julle ontbied en vra, ‘Wat is julle daaglikse werk?’ moet julle sê, ‘U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe – ons sowel as ons voorvaders’, sodat julle in die Gosenstreek kan woon, want alle herders van kleinvee is vir die Egiptenare afstootlik.” Josef het gegaan, die farao ingelig en gesê: “My vader en my broers met hulle kleinvee en grootvee en alles wat aan hulle behoort, het uit die land Kanaän hier aangekom. Hulle is nou daar in die Gosenstreek.” Uit sy broers se geledere het hy vyf manne geneem en hulle voor die farao gebring. Die farao het vir sy broers gevra: “Wat is julle daaglikse werk?” Hulle het die farao geantwoord: “U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons voorvaders.” Hulle sê toe vir die farao: “Ons het gekom om net as •vreemdelinge in die land te woon, want daar is nie weiding vir die kleinvee wat aan u dienaars behoort nie; ja, die hongersnood is erg in die land Kanaän. Laat u dienaars asseblief dan nou in die Gosenstreek bly.” Die farao het vir Josef gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom. Egipteland lê oop voor jou. Laat woon jou vader en jou broers in die beste deel van die land. Hulle mag in die Gosenstreek bly. As daar na jou wete bekwame manne onder hulle is, moet jy hulle aanstel as kuddebestuurders oor my vee.” Josef het daarna sy vader Jakob ingebring en hom voor die farao laat staan. Jakob het die farao met 'n seënwens gegroet. Toe vra die farao vir Jakob, “Hoeveel lewensjare het u agter die rug?” Jakob het die farao geantwoord: “My vreemdelingskap was honderd-en-dertig jaar lank. Min en vol teenspoed was my lewensjare – nie naastenby die lewensjare van my voorvaders in die tyd van hulle vreemdelingskap nie.” Jakob het die farao geseën en uit die farao se teenwoordigheid vertrek. Josef het sy vader en sy broers woonplek gegee. Hy het aan hulle erfgrond gegee in Egipteland, in die beste deel van die land, in die gebied Ramses, soos die farao beveel het. Josef het sy vader en sy broers en sy hele familie van kos voorsien volgens die getal afhanklikes. Kos was nêrens in die land te kry nie, want die hongersnood was baie erg. Egipteland en die land Kanaän het versmag van die honger. Josef het al die silwer wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, ingesamel in ruil vir die graan wat die mense kom koop het. Josef het die silwer na die farao se paleis geneem. Toe daar nie meer silwer in Egipteland en die land Kanaän was nie, het al die Egiptenare na Josef gekom en gesê: “Gee vir ons brood! Waarom moet ons hier voor u sterf omdat daar nie meer silwer is nie?” Josef het geantwoord: “Bring julle vee, dan gee ek vir julle brood in ruil vir julle vee, as julle nie meer silwer het nie.” Hulle het toe hulle vee na Josef gebring, en Josef het vir hulle brood gegee in ruil vir perde, kleinveekuddes, beeskuddes en donkies. Hy het hulle daardie jaar deurgehelp met brood in ruil vir hulle hele veestapel. Toe daardie jaar om is, kom hulle toe die tweede jaar by Josef aan en sê vir hom: “Ons kan dit nie vir my heer wegsteek nie, maar ons silwer is opgebruik en ons veekuddes is by my heer. Daar het niks vir my heer oorgebly nie, behalwe ons liggame en ons landerye. Waarom moet ons voor u oë omkom, ons en ook ons landerye? Koop ons en ons landerye met brood. Ons en ons grond sal in die farao se diens wees; en gee dan vir ons saad, sodat ons kan leef en nie sterf nie, en ons landerye nie verlate lê nie.” Josef het al die landerye in Egipte vir die farao opgekoop; ja, elke Egiptenaar het sy saailand verkoop, want die hongersnood oor hulle was straf. Die land het toe die farao se eiendom geword, en die mense het hy na die dorpe verskuif, van die een grens van Egipte tot die ander. Net die landerye van die priesters het hy nie gekoop nie, want daar was van die kant van die farao 'n vaste toelaag vir die priesters. Hulle het genoeg te ete gehad van die vaste toelaag wat die farao vir hulle gegee het. Daarom het hulle nie hulle landerye verkoop nie. Josef sê toe vir die volk: “Kyk, ek het julle en julle landerye vandag vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad, dan kan julle die landerye saai. Maar wanneer daar oeste is, moet julle 'n vyfde aan die farao afstaan. Die vier dele sal aan julle behoort as saad vir die saailand, en as julle kos, en ook vir dié wat in julle huise is, as kos vir julle afhanklikes.” Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons die farao se slawe word.” Josef het dit toe 'n vaste reëling gemaak wat tot vandag toe geld vir die landerye van Egipte: 'n vyfde van die opbrengs behoort aan die farao. Net die priesters se landerye het nie die farao se eiendom geword nie. Israel het in Egipteland, in die Gosenstreek, gewoon. Hulle het erfgrond daar verkry; hulle was vrugbaar en het talryk geword. Jakob het nog sewentien jaar lank in Egipteland geleef, sodat die getal lewensjare van Jakob honderd sewe-en-veertig jaar was. Toe die tyd vir Israel nader kom om te sterf, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: “As ek guns vind in jou oë, plaas dan asseblief jou hand onder my heup. Bewys liefde en trou aan my: Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. Wanneer ek by my voorvaders gaan rus, moet jy my uit Egipte neem en my in hulle graf gaan begrawe.” Hy het geantwoord: “Ek sal maak soos pa sê.” Toe sê hy: “Lê vir my 'n eed af!” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê. Israel het daarna in aanbidding gebuig by die koppenent van die bed. Ná hierdie gebeure is daar vir Josef gesê: “Kyk, u vader is siek.” Hy het toe sy twee seuns, Manasse en Efraim, saam met hom geneem. Hulle het vir Jakob vertel en gesê: “Kyk, u seun Josef het na u toe gekom.” Israel het sy kragte ingespan en regop gesit op sy bed. Jakob sê toe vir Josef: “God, die Almagtige, het by Lus in die land Kanaän aan my verskyn. Hy het my geseën en vir my gesê, ‘Kyk, Ek gaan jou vrugbaar maak en jou talryk laat word; Ek sal jou 'n skare volke maak. Ek sal hierdie land vir jou nageslag ná jou gee as erfgrond vir altyd.’ “ Daarom sal jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek na jou in Egipte gekom het, my eie wees. Efraim en Manasse sal soos Ruben en Simeon vir my wees. Jou ander nakomelinge, wat jy ná hulle verwek, sal egter joune wees. Hulle sal by die name van hulle broers genoem word wat hulle erfdeel betref. En wat my betref, toe ek uit Paddan gekom het, het Ragel langs my gesterf op die reis in die land Kanaän, toe daar nog 'n hele ent pad oor was om by Efrata uit te kom. Ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrata – dit is Betlehem.” Toe Israel die seuns van Josef sien, vra hy: “Wie is hulle?” Josef antwoord toe sy vader: “Dit is my seuns wat God my hier gegee het.” Daarop sê hy: “Bring hulle asseblief na my toe, sodat ek hulle kan seën.” Israel se oë was dof van die ouderdom; hy kon nie meer sien nie. Toe hy hulle na hom bring, het Israel hulle gesoen en hulle omhels. Israel sê toe vir Josef: “Ek het nie eers gebid om jou gesig weer te sien nie, en kyk, God het my selfs jou nakomelinge laat sien!” Josef het hulle van sy vader se knieë weggeneem en diep voor hom neergebuig met sy gesig na die grond. Daarop neem Josef hulle twee, Efraim met sy regterhand aan Israel se linkerkant, en Manasse met sy linkerhand aan Israel se regterkant, en bring hulle nader aan hom. Israel steek toe sy regterhand uit en plaas dit op Efraim se kop – terwyl hy die jongste was – en plaas sy linkerhand op Manasse se kop. Hy het sy arms gekruis, alhoewel Manasse die eersgeborene was. Hy het Josef geseën en gesê: “Die God voor wie my voorvaders, Abraham en Isak, geleef het, die God wat my as herder versorg het, my lewe lank, tot vandag toe, die •Engel wat my losgekoop het uit alle onheil – mag Hy dié jong manne seën! Mag my naam deur hulle genoem word en die naam van my voorvaders Abraham en Isak. Mag hulle talryk word in die land.” Josef het egter gesien dat sy vader sy regterhand op Efraim se kop sit, en dit was verkeerd in sy oë. Hy vat toe sy vader se hand om dit van Efraim se kop weg te skuif na Manasse se kop. Josef sê toe vir sy vader: “Nie so nie, pa, want hierdie een is die eersgeborene. Plaas pa se regterhand op sy kop.” Maar sy vader het geweier en gesê: “Ek weet, my seun, ek weet. Ook hy sal 'n volk word; ook hy sal groot wees. Maar sy jonger broer sal groter wees as hy. Sy nageslag sal 'n groot groep nasies word.” Daardie dag het hy hulle geseën met die woorde: “Met jou as voorbeeld sal Israel 'n seën uitspreek, ‘Mag God jou maak soos Efraim en Manasse.’ ” So het hy Efraim bo Manasse gestel. Israel het vir Josef gesê: “Kyk, ek gaan sterf, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terugbring na die land van julle voorouers. Ek self gee aan jou bo jou broers, 'n bergrug, wat ek met my swaard en my boog uit die hand van die •Amoriete geneem het.” Jakob het sy seuns laat roep en gesê: “Kom bymekaar, sodat ek julle kan inlig oor wat met julle gaan gebeur in die toekoms. “Kom bymekaar en luister, seuns van Jakob, luister na Israel, julle vader. Ruben, jy is my eersgeborene, my sterkte, die eersteling van my manlike krag – uitsonderlik in verhewenheid, uitsonderlik in krag. Onbeheerbaar soos water, sal jy nie voorrang geniet nie; want jy het op jou vader se beddens geklim, en dit toe verontreinig. Hy het op my slaapbank geklim. “ Simeon en Levi is broers – werktuie van geweld is hulle besnydenismesse. In hulle kring moet ek self nie kom nie; met hulle vergadering wil ek my nie vereenselwig nie. Want in hulle toorn het hulle mense vermoor, uit moedswilligheid het hulle beeste se hakskeensenings afgekap. Vervloek is hulle toorn, want dit is fel, en hulle gramskap, want dit is meedoënloos. Ek sal hulle uitmekaarjaag in Jakob, hulle verstrooi in Israel. “ Juda, jy, jou broers sal jou prys! Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; die seuns van jou vader sal diep voor jou buig. 'n Leeuwelpie is Juda; van die prooi, my seun, het jy opgestaan. Hy sak af, gaan lê soos 'n leeu, soos 'n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is. Aan 'n wingerdstok maak hy sy donkiehings vas, aan 'n edeldruif die vul van sy donkiemerrie. Hy was sy bokleed in wyn, en sy klere in die sap van druiwe. Die oë is donkerder as wyn, die tande witter as melk. “ Sebulon – aan die strand van die seë sal hy woon; ja, hy is by die strand waar die skepe is, met sy verste gebied langs Sidon. “ Issaskar is 'n bonkige donkie wat gaan lê tussen die saalsakke. Hy het gesien hoe goed die rusplek is, en hoe lieflik die land. Hy het sy skouer laat sak vir die las, hy het 'n dwangarbeider geword. “ Dan handhaaf die reg van sy volk as een van die stamme van Israel. Dan is 'n slang op die pad, 'n horingslang op die gebaande weg, wat die hakskene van 'n perd pik, en sy ruiter val agteroor. “ Op u verlossing wag ek, Here. “ Gad – 'n bende val hom aan, maar hy val die hakskeen aan. “ Uit Aser kom dit: Ryk is sy kos, hy self gee lekkernye geskik vir 'n koning. “ Naftali is 'n vrygelate rooitakbokooi wat mooi lammers gee. “ 'n Vrugbare jong wynstok is Josef, 'n vrugbare jong wynstok langs 'n fontein; die ranke hang oor die putmuur. Hulle het hom uitgetart en op hom geskiet; die boogskutters het hom verwoed teengestaan. Maar sy boog het bestendig gebly, en sy voorarms was behendig, vanweë die hande van die Magtige van Jakob, vanweë die roem van die Herder, die Rots van Israel, vanweë die God van jou vader, sodat Hy jou sou help, ja, God, die Almagtige, sodat Hy jou sou seën met seëninge uit die hemel daarbo, seëninge van die •oerwater wat daar onder lê, seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge van jou Vader oortref die seëninge van die ewige berge, die begeerlikhede van die oeroue heuwels. Mag dit rus op die kop van Josef, op die hoof van die prins onder sy broers. “Benjamin is 'n wolf wat verskeur. In die oggend verslind hy geroofde goed, en teen die aand verdeel hy buit.” Hulle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het toe hy hulle geseën het. Hy het hulle geseën, elkeen met sy gepaste seën. Jakob het vir hulle sy laaste opdragte gegee. Hy het vir hulle gesê: “Ek gaan met my mense verenig word. Begrawe my by my voorouers in die grot op die stuk grond van Efron, die Hetiet, in die grot wat op die stuk grond by Magpela is, oos van Mamre, in die land Kanaän. Abraham het die stuk grond by Efron, die Hetiet, as eiendom gekoop vir 'n begraafplek. Daar het hulle Abraham en sy vrou Sara begrawe. Daar het hulle Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek Lea begrawe. Die aankoop van die stuk veld en die grot wat daarop is, was van die Hetiete.” Toe Jakob klaar was met die opdragte aan sy seuns, het hy sy voete teruggetrek op die bed. Hy het sy asem uitgeblaas en is met sy mense verenig. Josef het op sy vader neergeval, by hom gehuil en hom gesoen. Josef het sy dienaars, die genesers, beveel om sy vader te balsem. Die genesers het Israel toe gebalsem. Daarvoor was 'n volle veertig dae nodig, want soveel dae neem dit om te balsem. Die Egiptenare het sewentig dae lank oor hom gerou. Toe die dae van rou oor hom verby was, het Josef met die huis van die farao gepraat en gesê: “As ek guns geniet in julle oë, gaan praat asseblief direk met die farao en sê, ‘My vader het my laat sweer deur te sê: “Kyk, ek gaan sterf. In my graf wat ek vir my uitgekap het in die land Kanaän, daar moet jy my begrawe.” Laat ek dan nou asseblief optrek, sodat ek my vader kan gaan begrawe en terugkeer.’ ” Die farao het gesê: “Trek op en gaan begrawe jou vader, soos hy jou laat sweer het.” Josef het toe opgetrek om sy vader te gaan begrawe. Al die dienaars van die farao, die oudstes van sy paleis en al die oudstes van Egipteland het saam met hom opgetrek, ook Josef se hele huis, sy broers en sy familie. Net hulle kinders, hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die Gosenstreek agtergelaat. Saam met hom het sowel strydwaens as spanne perde opgetrek. Dit was 'n besonder plegtige stoet. Toe hulle by Goren-Haätad oorkant die Jordaan aankom, het hulle daar 'n groot en besonder plegtige roubeklag gehou. Hy het sewe dae lank 'n rouseremonie gehou vir sy vader. Die bewoners van die gebied, die Kanaäniete, het die gerou by Goren-Haätad gesien en gesê: “Dit is 'n plegtige rouseremonie vir die Egiptenare.” Daarom het hulle die plek wat oorkant die Jordaan is, Abel-Misrajim genoem. Sy seuns het met hom gemaak presies soos hy hulle beveel het: Sy seuns het hom na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot op die stuk grond van Magpela, oos van Mamre, die stuk grond wat Abraham vir 'n begraafplek as eiendom gekoop het by Efron, die Hetiet. Josef het na Egipte teruggekeer nadat hy sy vader begrawe het – hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te gaan begrawe. Toe Josef se broers besef dat hulle vader nou dood is, sê hulle: “As Josef 'n wrok teenoor ons koester, gaan hy ons beslis terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.” Hulle het toe vir Josef laat weet: “U vader het voor sy dood opdrag gegee, ‘So moet julle vir Josef sê: “Vergewe tog asseblief die oortreding van jou broers en hulle misstap – dat hulle jou soveel kwaad aangedoen het.” ’ Dus, vergewe dan asseblief die oortreding van die dienaars van die God van u vader.” Josef het gehuil toe hulle met hom praat. Sy broers het ook self gegaan, voor hom neergeval en gesê: “Kyk, ons is u slawe.” Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om 'n groot volk aan die lewe te hou. Dus, moenie bang wees nie! Ek self sal julle en julle afhanklikes van kos voorsien.” So het hy hulle getroos en mooi met hulle gepraat. Josef het in Egipte bly woon, hy en sy familie. Hy het honderd-en-tien jaar lank geleef. Josef het die derde geslag van Efraim se nakomelinge gesien. Ook die kinders van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore. Josef het vir sy broers gesê: “Ek gaan sterf, maar God sal beslis aan julle aandag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat hy met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.” Josef het toe die Israeliete 'n eed laat aflê met die woorde: “God sal beslis aan julle aandag gee; neem dan my beendere hiervandaan saam.” Josef het gesterf toe hy honderd-en-tien jaar oud was. Hulle het hom gebalsem en in Egipte in 'n kis geplaas. Dit is die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte gegaan het, elkeen met sy huisgesin: Ruben, Simeon, Levi en Juda; Issaskar, Sebulon en Benjamin; Dan en Naftali, Gad en Aser. Daar was altesaam sewentig persone wat direk van Jakob afgestam het. Josef was toe reeds in Egipte. Josef, al sy broers en daardie hele geslag het gesterf. Maar die Israeliete was vrugbaar en het vermenigvuldig; hulle het vermeerder en besonder talryk begin word. Die land was vol van hulle. Daar het toe 'n nuwe koning oor Egipte aan bewind gekom wat nie van Josef geweet het nie. Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, die Israelitiese volk is meer en magtiger as ons. Kom ons beraam 'n slim plan teen hulle, anders vermeerder hulle en kan dit gebeur dat, wanneer 'n oorlog uitbreek, ook hulle by ons vyande aansluit en teen ons veg en optrek uit die land. ” Hulle het toe bevelvoerders van gedwonge arbeid oor die Israeliete aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes vir die farao die voorraadstede Pitom en Ramses bou. Maar hoe meer hulle die Israeliete onderdruk het, hoe meer het die Israeliete vermeerder en hoe meer het hulle versprei. Die Egiptenare het vreesbevange geraak vir die Israeliete en hulle toe met geweld gedwing om te werk. Hulle het hulle lewens bitter gemaak deur die harde slawewerk met klei en bakstene, en ook nog deur allerhande werk op die landerye, ja, met al die werk wat die Egiptenare die Israeliete met geweld gedwing het om te doen. Die koning van Egipte het toe met die Hebreeuse vroedvroue, wie se name Sifra en Pua was, gepraat. Hy het gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue met 'n bevalling help, kyk wat die baba se geslag is. As dit 'n seun is, maak hom dood; maar as dit 'n dogter is, laat haar leef.” Maar die vroedvroue het vir God ontsag gehad en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat leef. Die koning van Egipte het toe die vroedvroue ontbied en vir hulle gesê: “Waarom het julle dit gedoen? Julle laat die seuntjies leef!” “Omdat,” antwoord die vroedvroue toe die farao, “die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie – hulle is vol lewenskrag. Voordat die vroedvrou by hulle uitkom, het hulle klaar geboorte gegee.” En God het die vroedvroue goed behandel. Die volk se getalle het vermeerder en hulle het besonder baie geword. Omdat die vroedvroue vir God ontsag gehad het, het Hy vir hulle huisgesinne voorsien. Die farao het toe sy hele volk beveel: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, maar al die dogters moet julle laat leef.” 'n Man uit die familie van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi as vrou geneem. Die vrou het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande weggesteek. Maar toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom 'n papirusmandjie gekry en dit met pik en teer dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die palmiete aan die kant van die Nyl neergesit. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gaan gebeur. Die dogter van die farao het afgegaan na die Nyl om haar te was, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl stap. Sy sien toe die mandjie tussen die palmiete en stuur haar slavin om dit te gaan haal. Toe sy dit oopmaak, sien sy die seuntjie – en kyk, dit was 'n babaseuntjie wat huil! Sy het hom jammer gekry en het gesê: “Dit moet een van die seuntjies van die Hebreërs wees.” Sy suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek gaan en vir u 'n pleegma onder die Hebreeuse vroue gaan roep, sodat sy die seuntjie vir u kan voed?” Die farao se dogter het vir haar gesê: “Gaan!” Die jongmeisie gaan roep toe die seuntjie se moeder. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Neem hierdie seuntjie en voed hom vir my. Ek sal jou self daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en hom gevoed. Toe die seuntjie groter geword het, het sy hom na die farao se dogter gebring, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem, “Want,” het sy gesê, “uit die water het ek hom gehaal.” In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.” Daarop sê hy vir sy dogters: “En waar is hy nou? Waarom het julle die man dan daar agtergelaat? Roep hom, sodat hy iets te ete kan kry.” Moses het ingewillig om by die man te bly en hy het sy dogter, Sippora, vir Moses as vrou gegee. Sy het aan 'n seun geboorte gegee, en Moses het hom Gersom genoem, “Want,” het hy gesê, “ek het 'n •vreemdeling geword in 'n vreemde land.” Gedurende hierdie lang tyd het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem. Moses het sy skoonvader, Jetro, die priester van Midian, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag en uitgekom by die berg van God, by Horeb. Daar het die •Engel van die Here aan hom verskyn in 'n vuur wat uit 'n doringbos opvlam. Moses het gesien daar is 'n doringbos aan die brand, maar dié doringbos word sowaar nie verteer nie. Toe dink Moses, ek moet afdraai, sodat ek na hierdie buitengewone verskynsel kan kyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie? Toe die Here sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê die Here: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. Die Here sê toe: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na 'n goeie en uitgestrekte land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.” Moses het egter vir God gesê: “Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” Hy het geantwoord: “Ek is immers by jou. En dit sal vir jou die teken wees dat dit Ek is wat jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle God op hierdie berg dien. ” Moses het vir God gesê: “Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,’ en hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ wat moet ek vir hulle sê?” God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, “ ‘Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur.’ Dit is my Naam vir altyd; dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag. “ Gaan, en bring die oudstes van Israel byeen, en sê vir hulle, ‘Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word. Ek verklaar dan: Ek sal julle laat optrek, weg van die ellende in Egipte, na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.” ’ “Hulle sal na jou luister, en dan moet jy en die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan. Julle moet vir hom sê, ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief dan nou drie dagreise ver die woestyn ingaan, sodat ons aan die Here ons God kan offer.’ Ek weet egter dat hy, die koning van Egipte, julle nie sal toelaat om te gaan nie, tensy hy gedwing word deur 'n kragtige hand. Maar Ek sal my hand uitsteek en Egipte tref met al my wonders wat Ek in hulle midde gaan doen. Daarna sal hy julle laat gaan. Ek sal sorg dat die Egiptenare hierdie volk goedgesind is, sodat wanneer julle gaan, julle nie met leë hande sal gaan nie. Elke vrou moet van haar buurvrou of van die een wat in haar huis tydelike verblyf geniet, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. Julle moet julle seuns en dogters dit laat saamdra. So moet julle buit neem van die Egiptenare.” Hierop het Moses geantwoord en gesê: “Maar as die Israeliete my nie glo nie, en hulle nie na my luister nie? As hulle dalk sê, ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie’?” Die Here sê toe vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “'n Staf.” Die Here sê: “Gooi dit op die grond!” En toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang! Moses het daarvoor teruggedeins. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert!” Moses het sy hand uitgesteek en dit gegryp. Toe word dit weer 'n staf in sy hand. “Dit is sodat hulle kan glo dat die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.” Die Here het weer vir hom gesê: “Steek jou hand in die vou van jou kleed. ” Hy druk toe sy hand in die vou, en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! Daarop sê die Here: “Steek jou hand weer in die vou van jou kleed.” Hy het weer sy hand in die vou gesteek, en toe hy dit uit die vou uittrek, was dit weer soos die res van sy liggaam! “As hulle jou nie glo nie, en nie aandag gee aan die eerste teken nie, sal hulle die laaste teken glo. As dit dalk gebeur dat hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie, en nie na jou stem luister nie, skep dan van die Nyl se water en gooi dit uit op die droë grond. Die water wat jy uit die Nyl geskep het, sal bloed word op die droë grond.” Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, my Heer! Ek is nie 'n man van woorde nie, nie in die verlede nie, en ook nie vandat U met u dienskneg gepraat het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. ” Daarop sê die Here vir hom: “Wie het 'n mond vir die mens beskik, en wie maak stom of doof, siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan dan nou! Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar hy sê: “Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.” Die toorn van die Here het teen Moses ontbrand en Hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy welsprekend is. Wat meer is, kyk, hy is op pad om jou te ontmoet; en wanneer hy jou sien, sal sy hart verheug wees. Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond lê. Ek sal met jou mond en met sy mond wees. Ek sal julle leer wat julle moet doen. Hy moet namens jou met die volk praat. Dit is hoe dit gaan gebeur – hy sal vir jou 'n mond wees en jy sal vir hom 'n god wees. Hierdie staf moet jy in jou hand neem. Dit is waarmee jy die tekens moet doen.” Moses het toe gegaan, en teruggekeer na Jetro, sy skoonvader, en vir hom gesê: “Ek wil graag gaan en na my volksgenote wat in Egipte is, terugkeer, sodat ek kan sien of hulle nog leef.” Jetro sê toe vir Moses: “Gaan in vrede!” Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” Moses neem toe sy vrou en sy seuns, sit hulle op 'n donkie en gaan terug na Egipteland. Moses het die staf van God in sy hand gehad. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, sien toe dat jy al die tekens waartoe Ek jou in staat stel, voor die farao doen. Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Dan moet jy vir die farao sê, ‘So sê die Here: “My eersgebore seun is Israel. Ek het vir jou gesê, ‘Laat my seun gaan, sodat hy My kan dien.’ Maar jy het geweier om hom te laat gaan. Kyk, Ek gaan jou eersgebore seun om die lewe bring. ” ’ ” Op pad, by 'n oornagplek, het die Here op Moses afgekom en wou hom doodmaak. Sippora neem toe 'n vuurklip en sny haar seun se voorhuid af. Sy het Moses se voete aangeraak en gesê: “Jy is vir my 'n bloedbruidegom. ” Die Here het hom toe met rus gelaat. Dit is toe dat sy “bloedbruidegom” gesê het, met verwysing na die besnydenis. Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Hy het gegaan en op hom afgekom by die berg van God, en hom gesoen. Moses het Aäron ingelig oor al die woorde van die Here, wat hom gestuur het, en oor al die tekens wat Hy hom beveel het. Moses en Aäron het toe gegaan en al die oudstes van die Israeliete byeengebring. Aäron het al die woorde wat die Here vir Moses gesê het, herhaal. Moses het al die tekens voor die oë van die volk gedoen, en die volk het geglo. Toe hulle hoor dat die Here aandag gee aan die Israeliete en dat Hy hulle ellende raakgesien het, het hulle gekniel en in aanbidding gebuig. Hierna het Moses en Aäron gegaan en vir die farao gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Laat my volk gaan, sodat hulle vir My 'n fees kan hou in die woestyn. ’ ” Maar die farao het gesê: “Wie is die Here, dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie die Here nie, en Israel sal ek ook nie laat gaan nie. ” Toe sê hulle: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief drie dagreise in die woestyn ingaan, sodat ons aan die Here ons God kan offer; anders tref Hy ons met pessiekte of die swaard. ” Maar die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Waarom, Moses en Aäron, hou julle die mense uit hulle werk? Gaan terug na julle dwangarbeid!” Die farao het gedink, kyk, die mense van die land is nou reeds baie, en julle hou hulle uit hulle dwangarbeid. Die farao het nog dieselfde dag die volk se slawedrywers en opsieners beveel: “Julle mag nie soos voorheen voortgaan om vir die volk strooi te gee om bakstene te maak nie. Hulle moet nou self gaan om vir hulle strooi bymekaar te maak. Maar dieselfde hoeveelheid bakstene wat hulle voorheen gemaak het, moet julle steeds van hulle vereis. Julle mag dit nie inkort nie, want hulle is luiaards. Dit is waarom hulle uitroep, ‘Ons wil gaan, ons wil aan ons God offer!’ Die werk moet so swaar druk op die manne dat hulle daarmee besig bly en nie aandag gee aan 'n klomp leuens nie.” Die volk se slawedrywers en opsieners het uitgegaan en vir die volk gesê: “So sê die farao, ‘Ek gee vir julle geen strooi nie. Gaan kry self vir julle strooi waar julle dit ook al mag vind; maar julle werk word geensins verminder nie.’ ” Die volk het toe oor die hele Egipteland uitgegaan om stoppels in die plek van die strooi bymekaar te maak. Die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Maak julle werk klaar, die taak vir elke dag, soos toe daar strooi was.” Die opsieners van die Israeliete wat die slawedrywers van die farao oor hulle aangestel het, is geslaan. “Waarom het julle nie ook vandag, soos voorheen, julle kwota bakstene gemaak nie?” Die opsieners van die Israeliete het toe na die farao gegaan en uitgeroep: “Waarom maak u so met u dienaars? Geen strooi word vir u dienaars gegee nie, maar oor die bakstene sê hulle vir ons, ‘Maak dit!’ Kyk, u dienaars word geslaan, maar die fout lê by u mense. ” Hy het geantwoord: “Julle is luiaards, luiaards! Daarom sê julle, ‘Ons wil gaan; ons wil aan die Here gaan offer.’ Gaan werk dan nou! Strooi sal nie aan julle voorsien word nie, maar die vaste getal bakstene moet julle lewer.” Die opsieners van die Israeliete sien toe dat hulle in die moeilikheid is, omdat vir hulle gesê is: “Julle mag julle bakstene, die taak vir elke dag, nie verminder nie.” Toe hulle van die farao af weggaan, kom hulle op Moses en Aäron af, wat vir hulle staan en wag. Hulle sê toe vir hulle: “Mag die Here julle raaksien en oor julle oordeel, omdat julle ons aanstootlik gemaak het in die oë van die farao en sy amptenare, deur 'n swaard in hulle hand te plaas om ons dood te maak.” Moses het toe weer na die Here gegaan en gesê: “My Heer, waarom behandel U hierdie volk sleg? Waarom het U juis vir my gestuur? Vandat ek by die farao aangekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk sleg behandel, en U het glad nie u volk gered nie.” Die Here het toe vir Moses gesê: “Nou sal jy sien wat Ek aan die farao gaan doen; want, gedwing deur 'n sterk hand, sal hy hulle laat gaan; ja, gedwing deur 'n sterk hand, sal hy hulle uit sy land wegjaag.” God het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Ek is die Here. Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam ‘ Here ’ het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Ek het ook my verbond met hulle tot stand gebring, om vir hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle tydelike verblyf waarin hulle •vreemdelinge was. Ek het self ook die gekreun van die Israeliete gehoor, hulle wat deur die Egiptenare verplig word om te werk, en Ek het aan my verbond gedink. “ Daarom, sê vir die Israeliete, ‘Ek is die Here, en Ek sal julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle verlos van hulle slawewerk, en Ek sal julle loskoop met 'n uitgestrekte arm en met geweldige oordele. Ek gaan julle as volk vir My neem en Ek sal vir julle 'n God wees. Dan sal julle besef dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle bring na die land, waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan Abraham, aan Isak, en aan Jakob te gee, en Ek sal dit aan julle as eiendom gee. Ek is die Here. ’ ” Moses het dit toe net so vir die Israeliete gaan sê, maar hulle het nie na Moses geluister nie, omdat hulle neerslagtig was en hard moes werk. Die Here het toe met Moses gepraat en gesê: “Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, sodat hy die Israeliete uit sy land laat gaan.” Maar Moses het voor die Here gesê: “Kyk, die Israeliete het nie eers na my geluister nie, hoe sal die farao dan na my luister, terwyl my lippe lomp is?” Die Here het egter met Moses en Aäron gepraat en hulle opdragte gegee oor die Israeliete, en oor die farao, die koning van Egipte, om die Israeliete uit Egipteland te lei. Dit was die familiehoofde: Die seuns van Ruben, eersgeborene van Israel, was Ganog, Pallu, Gesron en Karmi. Dit was die familiegroepe van Ruben. Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sogar en Saul, die seun van 'n Kanaänitiese vrou. Dit was die familiegroepe van Simeon. Die volgende was die name van die nageslag van Levi volgens hulle familieregister: Gerson en Kehat en Merari. Levi het honderd sewe-en-dertig jaar lank geleef. Die seuns van Gerson was Libni en Simi, volgens hulle familiegroepe. Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Kehat het honderd drie-en-dertig jaar lank geleef. Die seuns van Merari was Magli en Musi. Dit was die familiegroepe van Levi, volgens hulle familieregister. Amram het Jogebed, sy vader se suster, vir hom as vrou geneem, en sy het vir hom Aäron en Moses in die wêreld gebring. Amram het honderd sewe-en-dertig jaar lank geleef. Die seuns van Jishar was Korag, Nefeg en Sigri. Die seuns van Ussiël was Misael, Elisafan en Sitri. Aäron het Eliseba, die dogter van Amminadab en die suster van Nagson, vir hom as vrou geneem, en sy het vir hom Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar in die wêreld gebring. Die seuns van Korag was Assir, Elkana en Abiasaf. Dit was die familiegroepe van die Koragiete. Eleasar, die seun van Aäron, het een van die dogters van Putiël vir hom as vrou geneem, en sy het aan Pinehas geboorte gegee. Dit was die familiehoofde van Levi volgens hulle familiegroepe. Dit is dieselfde Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Lei die Israeliete uit Egipteland volgens hulle leërafdelings.” Dit is hulle wat met die farao, die koning van Egipte, gepraat het om die Israeliete uit Egipte te lei, hierdie selfde Moses en Aäron. Die dag toe die Here met Moses in Egipteland gepraat het, het die Here vir Moses gesê: “Ek is die Here. Sê vir die farao, die koning van Egipte, alles wat Ek vir jou sê.” Waarop Moses toe voor die Here gesê het: “Kyk, my lippe is lomp, hoe sal die farao na my luister?” Die Here het egter vir Moses gesê: “Kyk, Ek maak jou 'n god vir die farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jy moet alles sê wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met die farao praat, dat hy die Israeliete uit sy land laat gaan. Maar Ek sal die farao se hart verhard en my tekens en wondertekens in Egipteland vermeerder. Die farao sal nie na julle luister nie, en Ek sal my hand met geweldige oordele op Egipte lê en my leërafdelings, my volk, die Israeliete, uit Egipteland lei. Die Egiptenare sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my hand oor Egipte uitstrek en die Israeliete uit hulle midde lei.” Moses en Aäron het toe so gemaak – soos die Here hulle beveel het, het hulle gemaak. Moses was tagtig en Aäron was drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met die farao gaan praat het. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “As die farao met julle praat en sê, ‘Doen julle 'n teken!’ dan moet jy vir Aäron sê, ‘Neem jou staf en gooi dit voor die farao neer, dan sal dit 'n slang word.’ ” Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en gemaak soos die Here beveel het. Aäron het sy staf voor die farao en voor sy amptenare neergegooi, en dit het 'n slang geword. Die farao roep toe op sy beurt die wyse manne en towenaars, en ook hulle, die Egiptiese waarsêerpriesters, het dieselfde gedoen met hulle towerkuns. Elkeen van hulle het sy staf neergegooi en dit het slange geword, maar Aäron se staf het hulle stawwe ingesluk. Die farao se hart was egter verhard en hy het nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Die farao se hart is onversetlik, hy weier om die volk te laat gaan. Gaan in die oggend na die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Wag vir hom aan die kant van die Nyl. Die staf wat in 'n slang verander het, moet jy in jou hand neem. Sê vir die farao, ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur om te sê: “Laat my volk gaan, sodat hulle My in die woestyn kan dien.” Kyk, tot nou toe het u nie geluister nie. So sê die Here: “Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is.” Kyk, ek gaan met die staf wat in my hand is op die water in die Nyl slaan, en dit sal in bloed verander; en die visse in die Nyl sal vrek, en die Nyl sal stink, sodat die Egiptenare nie meer water uit die Nyl kan drink nie.’ ” Verder het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron, ‘Neem jou staf en strek jou hand uit oor die waters van Egipte, oor hulle riviere, hulle kanale, hulle vleilande en oor al hulle opgaarplekke vir water – dan sal dit bloed word. Daar sal bloed wees in die hele Egipteland, selfs in die hout- en klipbakke.’ ” Moses en Aäron het toe so gemaak, net soos die Here beveel het. Aäron het die staf opgelig en die water in die Nyl geslaan voor die oë van die farao en sy amptenare; en al die water in die Nyl het in bloed verander. Die visse in die Nyl het gevrek, en die Nyl het so gestink dat die Egiptenare die water uit die Nyl nie kon drink nie. Daar was bloed in die hele Egipteland. Maar die Egiptiese waarsêerpriesters het dieselfde gedoen met hulle towerkuns. Die farao se hart het verhard en hy het nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het. Die farao het net omgedraai en sy paleis binnegegaan. Selfs dit het hy nie ter harte geneem nie. Maar al die Egiptenare het al langs die Nyl gegrawe vir water om te drink, want hulle kon die water van die Nyl nie drink nie. 'n Volle sewe dae het verbygegaan nadat die Here die Nyl getref het. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom, ‘So sê die Here: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. As jy bly weier om hulle te laat gaan – kyk, Ek gaan jou hele grondgebied met paddas tref. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal opkom en in jou huis kom, in jou slaapkamer en op jou bed; in die huise van jou amptenare en by jou mense; in jou bakoonde en jou knieskottels. Op jou en jou mense en op al jou amptenare sal die paddas spring.” ’ ” Die Here sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron, ‘Strek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die kanale en oor die vleilande, en laat die paddas opkom oor Egipteland.’ ” Aäron strek toe sy hand uit oor die waters van Egipte, en die paddas het opgekom en Egipteland oordek. Maar die waarsêerpriesters het dieselfde gedoen met hulle towerkuns, en paddas laat opkom oor Egipteland. Toe ontbied die farao vir Moses en Aäron en sê: “Pleit by die Here dat Hy die paddas van my en my mense wegneem, dan sal Ek die volk laat gaan, sodat hulle aan die Here kan offer.” Moses sê toe vir die farao: “Dit is u voorreg om te besluit. Wanneer moet ek vir u, u amptenare en u mense pleit, om die paddas uit te roei by u en uit u huise, dat hulle net in die Nyl oorbly?” Hy het geantwoord: “Môre.” Toe sê Moses: “Dit sal wees soos u sê, sodat u kan weet dat daar niemand is soos die Here ons God nie. Die paddas sal weggaan van u af en uit u huise uit, weg van u amptenare en u mense. Net in die Nyl sal daar van hulle oorbly.” Moses en Aäron het van die farao af weggegaan, en Moses het na die Here om hulp geroep oor die probleem van die paddas wat Hy vir die farao beskik het. Die Here het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die paddas het gevrek in die huise, in die dorpies en op die landerye. Hulle het dit op hope gegooi, en die land het gestink. Toe die farao sien dat daar uitkoms is, was hy onversetlik en het hy nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron, ‘Steek jou staf uit en slaan die stof op die grond; dan sal dit muggies word in die hele Egipteland.’ ” Hulle het toe so gemaak. Aäron het sy hand met sy staf uitgestrek, die stof op die grond geslaan, en daar was muggies op mens en dier. Al die stof van die land het muggies geword in die hele Egipteland. Die waarsêerpriesters het dit ook probeer doen – met hulle towerkuns muggies probeer voortbring – maar hulle kon nie. Daar was muggies op mens en dier. Toe sê die waarsêerpriesters vir die farao: “Dit is die vinger van God! ” Maar die farao se hart was verhard en hy wou nie na hulle luister nie, soos die Here gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Sê vir hom, ‘So sê die Here: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want as jy my volk nie laat gaan nie – kyk, Ek gaan op jou en jou amptenare en jou mense en in jou huise steekvlieë loslaat. Die huise van die Egiptenare sal vol steekvlieë wees, selfs op die grond waarop hulle staan. Maar op daardie dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk 'n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die Here, hier in die land is. Ek sal onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.” ’ ” Die Here het dit toe so gedoen. Digte swerms steekvlieë het die paleis van die farao en die huise van sy amptenare binnegedring. In die hele Egipteland het die land skade gely as gevolg van die steekvlieë. Die farao het Moses en Aäron ontbied en gesê: “Gaan, offer vir julle God in die land!” Maar Moses het geantwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want dit is afstootlik vir die Egiptenare wanneer ons vir die Here ons God offer. As ons dit wat afstootlik is vir die Egiptenare voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie? Ons wil drie dagreise ver die woestyn ingaan om vir die Here ons God te offer, soos Hy vir ons sê.” Daarop het die farao gesê: “Ek sal julle laat gaan, dat julle vir die Here julle God in die woestyn kan offer. Julle mag net nie te ver weggaan nie. En pleit vir my! ” Moses het toe gesê: “Kyk, wanneer ek van u af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die steekvlieë môre van die farao, sy amptenare en van sy volk af padgee. Mag dit net nie so wees dat die farao weer die spot dryf deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie.” Moses het van die farao af weggegaan en by die Here gepleit. Die Here het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die steekvlieë het van die farao, sy amptenare, en van sy volk af padgegee. Daar het nie een oorgebly nie. Maar die farao was ook hierdie keer onversetlik, en het die volk nie laat gaan nie. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom: ‘So sê die Here, die God van die Hebreërs, “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.” Want as jy aanhou weier om hulle te laat gaan en jy hulle steeds terughou – kyk, die hand van die Here is teen jou vee wat in die veld is. Onder die perde, die donkies, die kamele, die beeste en die kleinvee sal daar 'n baie swaar pessiekte uitbreek. Maar die Here sal onderskeid tref tussen die vee van Israel en die vee van Egipte, sodat niks van alles wat aan die Israeliete behoort, sal doodgaan nie. Die Here het 'n vaste tyd bepaal en gesê: “Môre sal die Here dit in die land doen.” ’ ” Die Here het dit toe die volgende dag gedoen. Al die vee van die Egiptenare het gevrek, maar van die vee van die Israeliete het daar nie een gevrek nie. Die farao het mense gestuur, en sowaar, van die vee van Israel was nie eers een dood nie. Maar die hart van die farao was onversetlik, en hy het die volk nie laat gaan nie. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Neem vir julle dubbele hande vol roet uit 'n oond. Moses moet dit voor die oë van die farao in die lug opgooi. Dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland. Dit sal in die hele Egipteland op mens en dier swere word wat in oop sere uitbars.” Hulle het toe roet uit 'n oond geneem en voor die farao gaan staan. Moses het dit in die lug opgegooi, en dit het swere geword wat op mens en dier in oop sere uitgebars het. Die waarsêerpriesters kon nie voor Moses bly staan nie vanweë die swere, want die swere was op die waarsêerpriesters en op al die Egiptenare. Maar die Here het die hart van die farao verhard, en hy het nie na hulle geluister nie, soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Sê vir hom, ‘So sê die Here, die God van die Hebreërs: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want hierdie keer gaan Ek jou met al my plae in die hart tref, ook jou amptenare en jou mense, sodat jy sal weet dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Want Ek kon nou al my hand uitgesteek en jou en jou volk met pessiekte getref het. Jy sou van die aarde af verdwyn het. Maar aan die ander kant, om hierdie rede het Ek jou staande gehou, om jou my krag te toon, sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Jy verhef jouself nog steeds teen my volk, deur hulle nie te laat gaan nie. Kyk, môre teen hierdie tyd gaan Ek baie swaar hael laat neerreën, soos wat daar nog nooit in Egipte was nie, van die dag dat dit gevestig is tot nou toe. Stuur dan nou mense, en bring jou vee en alles in die veld wat aan jou behoort, na veiligheid. Elke mens en dier wat hom in die veld bevind en nie na veiligheid gebring is nie – op hulle sal die hael val en hulle sal sterf.” ’ ” Van die farao se amptenare wat ontsag gehad het vir die woord van die Here, het hulle slawe en vee haastig na veiligheid gebring. Maar dié wat nie die woord van die Here ter harte geneem het nie, het hulle slawe en vee in die veld agtergelaat. Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar hael sal val in die hele Egipteland, op mens en dier en op al die plante in die veld in Egipteland.” Moses het toe sy staf na die hemel uitgesteek, en die Here het donderslae en hael beskik, terwyl weerligstrale op die grond neerslaan. Die Here het hael op Egipteland laat neerreën. Daar was hael, en tussen die hael deur het weerligstrale aanhoudend geblits. Dit was 'n baie swaar haelbui, soos wat daar nog nooit in Egipteland was vandat hulle 'n nasie geword het nie. Die hael het die hele Egipteland getref, alles wat in die veld was, mens en dier. Al die plante in die veld is deur die hael platgeslaan, elke boom in die veld is stukkend geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, het daar nie hael geval nie. Die farao het Moses en Aäron ontbied en vir hulle gesê: “Ek het hierdie keer gesondig. Die Here het gelyk en ek en my volk is verkeerd. Pleit by die Here, want daar is genoeg donderslae van God, en hael; ek sal julle laat gaan, julle hoef nie langer te bly nie.” Moses het vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande na die Here uitstrek. Die donderslae sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie, sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort. Maar wat u en u amptenare betref, ek weet dat u nog nie vir die Here God ontsag het nie.” Die vlas en die gars was weggeslaan, omdat die gars reeds in die aar was, en die vlas in die knopstadium. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, omdat dit eers later opkom. Moses het van die farao af uit die stad gegaan en sy hande na die Here uitgestrek. Die donderslae en hael het opgehou en die reën het nie meer op die aarde neergegiet nie. Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderslae ophou, het hy weer gesondig. Hy was onversetlik, hy en sy amptenare. Die farao se hart was verhard en hy het nie die Israeliete laat gaan nie, soos die Here gesê het by monde van Moses. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao, want dit is Ek wat sy hart en die harte van sy amptenare verhard het, sodat Ek hierdie tekens van My in hulle midde kon laat gebeur, en sodat jy ten aanhore van jou kinders en kleinkinders kan vertel hoe Ek die Egiptenare vir die gek gehou het, en van my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, en sodat julle kan weet dat Ek die Here is.” Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here, die God van die Hebreërs, ‘Hoe lank nog gaan jy weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want as jy aanhou weier om my volk te laat gaan – kyk, Ek gaan môre treksprinkane oor jou grondgebied bring. En hulle sal die oppervlakte van die land bedek, sodat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal die min wat oor is, wat vir julle ná die hael oorgebly het, verslind; en hulle sal elke boom in die veld wat weer vir julle uitloop, kaal vreet. Hulle sal jou huise, die huise van al jou amptenare en die huise van al die Egiptenare vul – soos jou ouers en grootouers nie gesien het nie, van die dag dat hulle op aarde gekom het tot vandag toe.’ ” Daarna het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan. Die farao se amptenare sê toe vir hom: “Hoe lank gaan hierdie man nog vir ons 'n valstrik wees? Laat die manne gaan, sodat hulle die Here hulle God kan gaan dien. Besef u nie dat Egipte ten gronde gaan nie?” Moses en Aäron is toe teruggebring na die farao. Hy het vir hulle gesê: “Gaan dien die Here julle God. Maar wie gaan almal?” Moses het geantwoord: “Met ons jongmense en ons bejaardes moet ons gaan; met ons seuns en dogters, met ons kleinvee en grootvee moet ons gaan, want vir ons is dit 'n fees van die Here. ” Die farao sê toe vir hulle: “Net so min as wat die Here met julle sal wees, so min sal ek julle en julle afhanklikes laat gaan! Kyk, wat julle beoog, is verkeerd. Dit sal nie so wees nie! Gaan julle manne maar, en dien die Here, want dit is mos wat julle versoek.” Hulle is toe uit die farao se teenwoordigheid weggejaag. Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit oor Egipteland vir die sprinkane, sodat hulle opkom oor Egipteland en alle plante op die grond verslind wat die hael laat oorbly het.” Moses het toe sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die Here het 'n oostewind daardie hele dag en die hele nag oor die land laat waai. Toe dit môre word, het die oostewind die treksprinkane gebring. Die treksprinkane het oor die hele Egipteland gekom en in elke streek van Egipte neergestryk. Daar was geweldig baie. Voorheen was daar nog nie 'n sprinkaanswerm soos dié een nie, en daarna sou daar nie weer so iets wees nie. Hulle het die oppervlakte van die land bedek, sodat die land donker geword het. Hulle het alle plante op die grond verslind, en ook al die vrugte aan die bome wat die hael vrygespring het. Daar het in die hele Egipteland nie enige groenigheid aan die bome en die plante van die veld oorgebly nie. Die farao het hom gehaas om Moses en Aäron te ontbied en gesê: “Ek het teen die Here, julle God, en teen julle gesondig. Vergewe nou asseblief net hierdie keer my sonde. Pleit by die Here, julle God, dat Hy tog net hierdie dood van my af moet wegneem.” Moses het van die farao af weggegaan en by die Here gepleit. Die Here het toe die wind in 'n baie sterk westewind verander. Dit het die treksprinkane meegevoer en in die Rietsee ingedryf. Daar het nie 'n enkele sprinkaan in enige streek van Egipte oorgebly nie. Maar die Here het die hart van die farao verhard, en hy het nie die Israeliete laat gaan nie. Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar 'n duisternis oor Egipteland kom, 'n tasbare duisternis.” Moses het sy hand na die hemel uitgestrek, en drie dae lank was daar 'n diepe duisternis oor die hele Egipteland. Die mense kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank het niemand van sy plek af opgestaan nie. Vir al die Israeliete was dit egter lig in hulle woonplekke. Die farao het Moses ontbied en gesê: “Gaan dien julle die Here! Net julle kleinvee en grootvee moet agtergelaat word. Julle afhanklikes kan ook saam met julle gaan.” Maar Moses het geantwoord: “U moet dan ook vir ons slagoffers en •brandoffers saamgee, sodat ons vir die Here ons God kan offer. Ons vee moet ook saam met ons gaan. Geen kloutjie mag agterbly nie, want ons moet van die vee neem om die Here ons God mee te dien. Totdat ons daar aangekom het, weet ons egter self nie waarmee ons die Here ons God moet dien nie.” Maar die Here het die farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat gaan nie. Toe sê die farao vir hom: “Gaan weg van my af! Pasop, jy mag my gesig nie weer sien nie, want die dag wat jy my gesig sien, sterf jy.” Moses het geantwoord: “Dit is soos u sê. Ek sal u gesig nie weer sien nie. ” Die Here het vir Moses gesê: “Nog een plaag gaan Ek oor die farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle van hier af laat gaan. Wanneer hy julle laat gaan, sal hy julle beslis met alles wat julle het, van hier af wegjaag. Stel dit duidelik aan die volk dat elke man van sy buurman en elke vrou van haar buurvrou silwer- en goue voorwerpe eis.” Die Here het gesorg dat die Egiptenare die volk goedgesind is. Ook Moses was 'n man wat hoë aansien geniet het in Egipteland, in die oë van die farao se amptenare en in die oë van die volk. Moses het gesê: “So sê die Here, ‘Teen middernag gaan Ek dwarsdeur Egipte trek. Dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterf, van die eersgeborene van die farao wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die maalklippe, ook al die eersgeborenes van die vee. Deur die hele Egipteland sal daar 'n harde geskreeu opklink, soos daar nog nooit was nie, en soos daar nooit weer sal wees nie. Maar by al die Israeliete sal nie eers 'n hond grom nie, vir geen mens of dier nie, sodat julle kan besef dat die Here onderskeid tref tussen Egipte en Israel. Dan sal al hierdie amptenare van u na my afkom en diep voor my buig en sê: “Trek weg, jy en die hele volk wat jou volg.” Eers daarna sal ek wegtrek.’ ” Toe het hy van die farao af weggegaan, briesend kwaad. Die Here het vir Moses gesê: “Die farao sal nie na julle luister nie, sodat my tekens in Egipteland nog meer kan word.” Moses en Aäron het al hierdie tekens voor die farao gedoen, maar die Here het die farao se hart verhard, sodat hy nie die Israeliete uit sy land wou laat gaan nie. Die Here het vir Moses en Aäron in Egipteland gesê: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Praat met die hele volksvergadering van Israel en sê, ‘Op die tiende van hierdie maand moet elkeen van hulle 'n lam neem vir sy familie, 'n lam vir 'n huisgesin. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit deel in verhouding tot die getal persone. Julle moet die lam in porsies verdeel in ooreenstemming met wat elke huisgesin gaan eet. 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem. Julle moet die lammers veilig hou tot die veertiende dag van hierdie maand. Die hele byeenkoms van die volksvergadering van Israel moet dan laatmiddag hulle lammers slag. “ ‘ Hulle moet van die bloed neem en dit smeer aan die sykante en bokant van die deurkosyne by die huise waarin hulle dit eet. Hulle moet die vleis dieselfde nag eet; oor die vuur gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, moet hulle dit eet.’ “ Julle moet nie daarvan eet as dit rou is of in water gaargemaak is nie; maar net as dit oor die vuur gebraai is met sy kop, pote en ingewande. Julle mag niks daarvan tot die volgende oggend laat oorbly nie. Wat daarvan oorbly tot die oggend, moet verbrand word. Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die Here. “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die Here. Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie. “ Hierdie dag moet vir julle dien as 'n herinneringsdag; julle moet dit as 'n fees ter ere van die Here vier. As 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, moet julle die dag feestelik vier. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Reeds op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat iets eet wat met suurdeeg gebak is, vanaf die eerste tot die sewende dag – daardie persoon sal van Israel afgesny word. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou, en ook op die sewende dag. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie; net wat elkeen moet eet, slegs dit mag vir julle voorberei word. Onderhou die Fees van die Ongesuurde Brood, want op hierdie bepaalde dag het Ek julle leërafdelings uit Egipteland gelei. Julle moet hierdie dag onderhou as 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. “ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brood eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat iets eet met suurdeeg in – daardie persoon sal van die volksvergadering van Israel afgesny word, of hy nou 'n •vreemdeling of 'n gebore Israeliet is. Enigiets met suurdeeg in mag julle nie eet nie; in al julle woonplekke moet julle ongesuurde brood eet.” Moses het toe al die oudstes van Israel geroep en vir hulle gesê: “Vang en neem self lammers vir julle familiegroepe, en slag die Pasgalam. Neem 'n bossie marjolein en doop dit in die bloed wat in 'n bak is. Vee van die bloed wat in die bak is, aan die bokant en aan die twee sykante van die kosyne. En wat julle betref – niemand mag by die deur van sy huis uitgaan tot die volgende oggend nie. Die Here sal deur die land gaan om die Egiptenare te tref; en wanneer Hy die bloed aan die bokant en die twee sykante van die kosyn sien, sal die Here by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om julle huise binne te gaan om julle te tref nie. “Kom hierdie saak na as 'n voorskrif wat vir altyd geld, vir jou en jou kinders. Wanneer julle in die land kom wat die Here aan julle sal gee soos Hy belowe het, moet julle hierdie gebruik nakom. Wanneer julle kinders julle vra, ‘Wat beteken hierdie gebruik vir julle?’ dan moet julle sê, ‘Dit is die •Pasgaoffer vir die Here, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ ” Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig. Die Israeliete het gegaan en dit gedoen. Soos die Here Moses en Aäron beveel het, het hulle gemaak. Dit het teen middernag gebeur. Die Here het alle eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van die farao wat op die troon gesit het tot die eersgeborene van die krygsgevangene in die kerker, ook al die eersgeborenes van die vee. Die farao het in die nag opgestaan, hy, al sy amptenare en al die Egiptenare. Daar was 'n harde geskreeu in Egipte, want daar was nie 'n enkele huis waar daar nie 'n dooie was nie. Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die Here soos julle gesê het. Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.” Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. Dit was die Here wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare. Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee. Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie. Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar. Aan die einde van vierhonderd-en-dertig jaar, op presies dieselfde dag, het al die leërafdelings van die Here uit Egipteland weggetrek. Dit was 'n nag waarin die Here gewaak het om hulle uit Egipteland uit te lei. Daardie nag is 'n nag van waak tot eer van die Here vir al die Israeliete deur hulle geslagte heen. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die vaste voorskrif vir die Pasga: Geen buitelander mag daarvan eet nie. Maar enige slaaf wat deur iemand met silwer gekoop is, mag, nadat jy hom besny het, daarvan eet. Geen bywoner of huurarbeider mag daarvan eet nie. Dit moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. 'n Been daarin mag julle nie breek nie. Die hele volksvergadering van Israel moet dit vier. “ Wanneer 'n vreemdeling tydelik by jou is, en hy wil die Pasga vier tot eer van die Here, moet al die manlike persone by hom besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en sal hy soos 'n gebore Israeliet wees. Enigiemand wat nie besny is nie, mag daarvan nie eet nie. Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is.” Al die Israeliete het dit gedoen. Soos die Here aan Moses en Aäron opdrag gegee het, het hulle dit gedoen. Op daardie selfde dag nog het die Here die Israeliete uit Egipteland uitgelei, leërafdeling vir leërafdeling. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Wy al die eersgeborenes aan My. Die eerstelinge van elke moederskoot onder die Israeliete, van mense en diere, behoort aan My.” Moses het vir die volk gesê: “Herdenk hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het; want deur 'n sterk hand het die Here julle hier uitgelei. Iets wat suurdeeg bevat, mag nie geëet word nie. Vandag, in die maand Abib, trek julle weg. Wanneer die Here jou bring in die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Hewiete en die Jebusiete, die land wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, moet jy in hierdie maand die volgende gebruik handhaaf: Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet daar 'n fees ter ere van die Here wees. Ongesuurde brood moet sewe dae lank geëet word. Daar mag by jou nie iets met suurdeeg in te sien wees nie; ja, in jou hele grondgebied mag daar nie suurdeeg by jou te sien wees nie. Jy moet jou seun op daardie dag inlig en sê, ‘Dit is ter herdenking van wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ Dit sal vir jou dien as 'n teken op jou hand en as 'n herinneringsteken op jou voorkop, sodat die wet van die Here op jou lippe sal wees. Want met 'n sterk hand het die Here jou uit Egipte uitgelei. Jy moet hierdie vaste voorskrif op die bepaalde tyd, jaar ná jaar, nakom. “Wanneer die Here jou in die land van die Kanaäniete bring, soos Hy vir jou en jou voorvaders met 'n eed beloof het, en Hy dit vir jou gee, moet jy elke eersteling van die moederskoot aan die Here afstaan. Elke eersteling van die aanteel van jou vee wat jy kry, die manlikes, behoort aan die Here. Elke eersteling van 'n donkie moet jy loskoop met 'n lam. As jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Elke eersgeborene onder jou seuns moet jy loskoop. “ As jou seun jou in die toekoms vra, ‘Wat beteken dit?’ moet jy vir hom sê, ‘Met 'n sterk hand het die Here ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, uitgelei. Toe die farao te koppig was om ons te laat gaan, het die Here al die eersgeborenes in Egipteland doodgemaak, van die eersgeborenes van mense tot die eersgeborenes van die vee. Daarom offer ek aan die Here elke manlike eersteling van die vee, maar elke eersgeborene van my seuns koop ek los.’ Dit sal as 'n teken op jou hand en 'n versiering op jou voorkop dien, want met 'n sterk hand het die Here ons uit Egipte uitgelei.” Toe die farao die volk laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad na die land van die Filistyne nie, al was dit nader; want God het gesê: “Anders kry die volk spyt wanneer hulle oorlog in die gesig staar, en keer hulle terug na Egipte.” God het toe die volk 'n ompad laat neem met die woestyn langs na die Rietsee. Die Israeliete het in slagorde uit Egipteland opgetrek. Moses het die beendere van Josef met hom saamgeneem, want Josef het die Israeliete plegtig 'n eed laat aflê; hy het gesê: “God sal beslis na julle omsien, dan moet julle my beendere hiervandaan saam met julle neem.” Hulle het van Sukkot af weggetrek en kamp opgeslaan by Etam, aan die rand van die woestyn. Die Here het bedags in 'n wolkkolom voor hulle uitgegaan om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om aan hulle lig te verskaf, sodat hulle bedags en snags kon trek. Die wolkkolom het bedags en die vuurkolom snags, nie voor die volk weggegaan nie. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete, sodat hulle van rigting verander en kamp opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle kamp opslaan by die see. Die farao sal dan van die Israeliete dink, hulle dwaal verward rond in die land; die woestyn omsluit hulle. Ek sal die farao se hart verhard en hy sal hulle agtervolg, sodat Ek deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, agting kan afdwing, en sodat die Egiptenare sal weet dat Ek die Here is. ” Die Israeliete het toe so gemaak. Toe daar aan die koning van Egipte berig gebring is dat die volk gevlug het, het die farao en sy amptenare van besluit verander oor die volk. Hulle het gesê: “Wat het ons besiel dat ons Israel uit ons diens laat gaan het?” Hy het sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem. Hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem, asook al die ander strydwaens van Egipte, met 'n offisier op elkeen van hulle. Die Here het die hart van die farao, die koning van Egipte, verhard, en hy het die Israeliete agtervolg, terwyl die Israeliete, gelei deur 'n verhewe hand, uitgetrek het. Die Egiptenare het hulle agtervolg. Die hele strydwamag van die farao, sy bemanning en sy leërmag het hulle ingehaal waar hulle by die see besig was om kamp op te slaan by Pi-Hagirot voor Baäl-Sefon. Toe die farao nader kom, kyk die Israeliete op, en daar is die Egiptenare besig om teen hulle op te ruk! Hulle was angsbevange. Die Israeliete roep toe na die Here om hulp, en sê vir Moses: “Is dit omdat daar geen grafte in Egipte is nie, dat jy ons saamgeneem het om in die woestyn te sterf? Wat het jy ons aangedoen deur ons uit Egipte uit te lei! Is dit nie presies waaroor ons met jou in Egipte gepraat het nie, toe ons gesê het, ‘Laat ons met rus, sodat ons vir die Egiptenare kan werk! Dit is immers vir ons beter om vir die Egiptenare te werk as om in die woestyn te sterf.’ ” Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die Here self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.” Die Here het vir Moses gesê: “Wat roep jy na My? Praat met die Israeliete, sodat hulle verder trek. En jy, lig jou staf op, strek jou hand uit oor die see en kloof dit oop, sodat die Israeliete op droë grond in die middel van die see kan ingaan. En wat My betref, kyk, Ek gaan die hart van die Egiptenare verhard, sodat hulle agter hulle ingaan. Dan sal Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, sy strydwaens en bemanning. Die Egiptenare sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao, sy strydwaens en bemanning.” Die •Engel van God, wat die hele tyd voor die leër van Israel uit getrek het, het toe agter hulle in beweeg. Die wolkkolom het ook van voor hulle weggeskuif en agter hulle plek ingeneem. Dit het tussen die leër van Egipte en die leër van Israel ingeskuif. Die wolk het daar gebly en toe dit donker word, het dit die nag verlig. Maar die hele nag lank het die een nie nader aan die ander beweeg nie. Moses het sy hand oor die see uitgestrek, en die Here het met 'n sterk oostewind, wat die hele nag lank gewaai het, die see laat terugtrek. Hy het die see droë grond gemaak; die water is oopgekloof. Die Israeliete het op droë grond in die middel van die see ingegaan, terwyl die water vir hulle 'n muur aan hulle linker- en regterkant was. Die Egiptenare het hulle agtervolg, en al die perde van die farao, sy strydwaens en bemanning het agter hulle ingegaan na die middel van die see. Teen die laaste nagwaak het die Here uit die vuurkolom en die wolk afgekyk na die leër van Egipte. Toe het Hy verwarring veroorsaak in die leër van die Egiptenare. Hy het die wiele van hulle strydwaens laat vasval, sodat hulle met moeite vorentoe kon beweeg. Toe sê die Egiptenare: “Ons moet van Israel af wegvlug, want die Here self veg vir hulle teen Egipte.” Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit oor die see, sodat die water terugstroom oor die Egiptenare, oor hulle strydwaens en die bemanning.” Moses het sy hand uitgestrek oor die see, en die see het teen die oggend na sy gewone plek teruggestroom. Die Egiptenare het gevlug vir die naderende water. Maar die Here het die Egiptenare in die middel van die see gewerp. Toe die water terugstroom, het dit die strydwaens en bemanning van die farao se hele leër wat agter die Israeliete in die see ingegaan het, verswelg. Nie eers een van hulle het oorgebly nie. Die Israeliete het deur die middel van die see op droë grond getrek, terwyl die water vir hulle 'n muur was aan hulle linker- en regterkant. Die Here het Israel op daardie dag uit die hand van die Egiptenare verlos. Israel het die Egiptenare dood sien lê aan die kant van die see. Toe Israel die magtige daad sien wat die Here teen Egipte gedoen het, het die volk vir die Here ontsag gehad en hulle vertroue in die Here en in sy dienskneg, Moses, gestel. Toe het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger. My krag en sterkte is die Here, en Hy was my redding. Hy is my God, en Hom sal ek vereer, die God van my vader, en Hom sal ek verheerlik. “Die Here is 'n krygsman, Here is sy Naam. Die farao se strydwaens en sy leër het Hy in die see geslinger; die keur van sy offisiere het weggesink in die Rietsee. Die watermassa het hulle verswelg; in die dieptes het hulle afgesak soos 'n klip. “ U regterhand, Here – majestueus in krag; U regterhand, Here, vernietig die vyand. In u hoë verhewenheid breek U hulle af wat teen U opstaan. U gee u toorngloed vrye teuels, dit verteer hulle soos strooi. Deur die asem uit u neus het die water opgedam, het die seestrome gaan staan soos in 'n dam, het die watermassa in die hart van die see gestol. “Die vyand het gesê, ‘Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel; my begeerte sal vervul word. Ek sal my swaard trek, my hand sal hulle onderwerp.’ U het met u asem geblaas, die see het hulle verswelg; soos lood het hulle gesink in die magtige waters. “ Wie is soos U onder die gode, Here? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in lofwaardige dade? U wat wonders doen, U het u regterhand uitgestrek; die aarde het hulle ingesluk. “Deur u troue liefde sal U die volk lei wat U gered het. Deur u krag sal U hulle begelei na u heilige woonplek. Volke sal dit hoor, hulle sal sidder; benoudheid pak die inwoners van Filistea beet. Dan raak die stamhoofde van Edom beangs, bewing pak die leiers van Moab beet; al die inwoners van Kanaän sidder. Verskrikking en vrees sal hulle oorval; vanweë u magtige arm raak hulle stil soos 'n klip, totdat u volk, Here, verbytrek, totdat die volk wat U gekoop het, verbytrek. U sal hulle inbring en plant op die berg van u erfgrond, die plek wat U voorberei het vir u verblyf, Here, die heiligdom, my Heer, wat u hande gevestig het. “ Die Here sal regeer vir altyd en ewig. Want die perde van die farao, met sy strydwaens en bemanning, het in die see ingegaan, en die Here het die water van die see oor hulle laat terugvloei. Maar die Israeliete het op droë grond in die middel van die see deurgetrek.” Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, 'n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in 'n kring gedans. Mirjam het vir hulle die refrein gesing: “Sing vir die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger.” Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie. Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem. Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” Hy het na die Here om hulp geroep; en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here vir hulle 'n vaste voorskrif en 'n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets. Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die Here jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak. ” Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan. Die Israeliete het van Elim af weggetrek en die hele volksvergadering van die Israeliete het in die Sinwoestyn aangekom, wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het. Die hele volksvergadering van die Israeliete het teen Moses en Aäron gemor in die woestyn. Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die Here in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.” Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie. Op die sesde dag moet hulle voorberei wat hulle inbring; dit moet dan twee maal soveel wees as wat hulle daagliks bymekaarmaak.” Moses en Aäron het vir al die Israeliete gesê: “Vanaand sal julle weet dat dit die Here is wat julle uit Egipteland uitgelei het, en môreoggend sal julle die heerlikheid van die Here beleef, omdat Hy julle gemor teen die Here gehoor het. Wie is ons, dat julle teen ons mor? ” “Ja,” het Moses bygevoeg, “wanneer die Here vir julle vleis in die aand gee om te eet en brood in die oggend om julle versadig te eet, omdat die Here julle gemor gehoor het wat julle teen Hom gerig het. Wie is ons? Dit is nie teen ons wat julle gemor het nie, maar teen die Here. ” Moses sê toe vir Aäron: “Sê vir die hele volksvergadering van die Israeliete, ‘Kom nader voor die Here, want Hy het julle gemor gehoor.’ ” Net nadat Aäron met die hele volksvergadering van die Israeliete gepraat het, het hulle in die rigting van die woestyn gedraai, en kyk, die heerlikheid van die Here het in 'n wolk verskyn! Die Here sê toe vir Moses: “Ek het die gemor van die Israeliete gehoor. Praat met hulle en sê, ‘Laatmiddag sal julle vleis eet, en in die oggend sal julle versadig wees van brood. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is. ’ ” In die aand het kwartels oorgekom en die kamp bedek, en in die oggend was daar 'n laag dou rondom die kamp. Toe die doulaag verdamp – kyk, toe is daar op die oppervlakte van die woestyn iets wat fyn en skilferagtig is, so fyn soos ysryp op die grond. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gegee het om te eet. Dit is die opdrag wat die Here gegee het, ‘Elkeen van julle moet soveel bymekaarmaak as wat die aantal persone by julle kan eet – 'n omer per kop. Dan moet elkeen van julle dit neem vir wie in sy tent is.’ ” Die Israeliete het toe so gemaak; hulle het bymekaargemaak, die een baie en die ander een min. Toe hulle dit met 'n omer meet, het dié wat baie opgetel het, nie te veel gehad nie, en dié wat min opgetel het, nie te min gehad nie. Wat elkeen nodig gehad het om te eet, het hulle bymekaargemaak. Moses sê toe vir hulle: “Niemand moet daarvan oorhou tot die oggend nie.” Maar hulle het nie na Moses geluister nie. Party het daarvan oorgehou tot die volgende oggend, maar dit was vol maaiers en het gestink. Moses was woedend vir hulle. Hulle het dit elke oggend bymekaargemaak, elkeen soveel as wat hy kon eet; maar as die son warm word, het dit weggesmelt. Op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood bymekaargemaak, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volksvergadering het gekom en dit vir Moses vertel. Hy sê toe vir hulle: “Dit is wat die Here gesê het, ‘Môre is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige Sabbat tot eer van die Here. Wat julle wil bak, moet julle bak, en wat julle wil kook, moet julle kook. Alles wat te veel is, moet julle veilig bêre tot die oggend.’ ” Hulle het dit weggesit tot die oggend soos Moses beveel het. Dit het nie gestink nie en daar was nie maaiers in nie. Moses het gesê: “Eet dit vandag, want vandag is 'n Sabbat ter ere van die Here. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. Vir ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, op 'n Sabbat, sal daar nie wees nie.” Op die sewende dag het van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie. Die Here sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle weier om my gebooie en wette na te kom? Julle moet insien dat die Here vir julle die Sabbat gegee het – daarom gee Hy op die sesde dag twee dae se brood. Elkeen moet bly waar hy is; niemand mag op die sewende dag sy blyplek verlaat nie.” Die volk het toe op die sewende dag gerus. Die huis van Israel het dit man genoem. Dit was wit soos koljandersaad, en dit het geproe soos soetgebak met heuning. Moses het gesê: “Dit is wat die Here beveel het, ‘'n Volle omer daarvan moet bewaar word vir julle nageslagte, sodat hulle die brood kan sien waarmee Ek julle in die woestyn gevoed het toe Ek julle uit Egipteland uitgelei het.’ ” Daarom het Moses vir Aäron gesê: “Neem een kruik, plaas 'n volle omer manna daarin, en sit dit voor die Here neer om te bewaar vir julle nageslagte.” Soos die Here Moses beveel het, het Aäron dit toe later voor die Getuienis geplaas vir bewaring. Die Israeliete het die manna veertig jaar lank geëet, totdat hulle by bewoonde land gekom het. Die manna het hulle geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän aangekom het. 'n Omer is 'n tiende van 'n efa. Die hele volksvergadering van die Israeliete het op bevel van die Here, volgens hulle trekgroepe, weggetrek uit die Sinwoestyn. Hulle het by Refidim kamp opgeslaan, maar daar was nie vir die volk water om te drink nie. Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink!” Moses het hulle geantwoord: “Waarom verwyt julle my? Waarom daag julle die Here uit? ” Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemor en gesê: “Waarvoor het jy ons uit Egipte laat optrek? Om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat sterf?” Moses het na die Here om hulp geroep en gesê: “Wat moet ek maak met hierdie volk? Hulle is op die punt om my te stenig. ” Die Here sê toe vir Moses: “Gaan voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam. Die staf waarmee jy die Nyl geslaan het, moet jy in jou hand neem. Gaan dan! Kyk, Ek sal daar voor jou staan op die rots by Horeb. Jy moet op die rots slaan, dan sal daar water uitkom, en die volk sal drink.” Moses het dit toe gedoen ten aanskoue van die oudstes van Israel. Hy het die plek Massa en Meriba genoem, na aanleiding van die Israeliete se verwyte, en omdat hulle die Here uitgedaag het deur te sê: “Is die Here in ons midde of nie?” Toe die Amalekiete kom om teen Israel te veg by Refidim, het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die heuweltop gaan staan met die staf van God in my hand. ” Josua het toe, soos Moses vir hom gesê het, gereedgemaak om teen Amalek te veg; en Moses, Aäron en Hur het opgeklim na die heuweltop. Wanneer Moses sy hand omhoog hou, het Israel die oorhand gekry; maar wanneer hy sy hand laat rus, het Amalek die oorhand gekry. Toe Moses se hande swaar word, het hulle 'n klip geneem en onder hom neergesit. Hy het daarop gaan sit. Aäron en Hur het, een aan elke kant, sy hande gestut. Sy hande het bestendig omhoog gebly totdat die son ondergegaan het. Josua het Amalek en sy volk oorwin met die skerpte van die swaard. Die Here het vir Moses gesê: “Skryf dit in 'n •boekrol neer as 'n blywende herinnering, en stel dit duidelik aan Josua, dat Ek beslis die naam Amalek onder die hemel gaan uitwis. ” Moses het 'n altaar gebou en dit genoem, Die Here is my banier. Hy het gesê: “Omdat 'n hand teen die troon van die Here was, is daar oorlog vir die Here teen Amalek van geslag tot geslag.” Jetro, priester van Midian, en die skoonvader van Moses, het alles gehoor wat God vir Moses en vir sy volk Israel gedoen het – hoe die Here Israel uit Egipte uitgelei het. Jetro, die skoonvader van Moses, het toe vir Sippora, die vrou van Moses, vir wie Moses vroeër huis toe gestuur het, saamgeneem, ook haar twee seuns. Die naam van die een was Gersom, “want,” het Moses gesê, “ek was 'n •vreemdeling in 'n vreemde land”; en die naam van die ander een was Eliëser, “want,” het hy gesê, “die God van my vader is my hulp. Hy het my van die swaard van die farao gered.” Jetro, die skoonvader van Moses, het met die seuns en Moses se vrou in die woestyn na Moses gegaan waar hy by die berg van God kamp opgeslaan het. Hy het vir Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa, Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.” Moses het uitgegaan om sy skoonvader te ontmoet. Hy het diep gebuig en hom gesoen. Hulle het na mekaar se welstand gevra, en die tent binnegegaan. Moses het sy skoonvader alles vertel wat die Here aan die farao en aan die Egiptenare gedoen het ter wille van Israel, en van al die moeilikhede wat hulle op pad ondervind het, en hoe die Here hulle uitgered het. Jetro was verheug oor al die goeie dinge wat die Here aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenare gered het. Jetro het gesê: “Die Here moet geprys word, Hy wat julle gered het uit die hand van die Egiptenare en van die farao, en wat die volk onder die hand van die Egiptenare uit gered het. Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode, dat dit in hierdie saak daaroor gaan dat die Egiptenare brutaal opgetree het teen die Israeliete.” Jetro, Moses se skoonvader, het toe 'n •brandoffer en slagoffers geneem om voor God te bring. Aäron en al die oudstes van Israel het gekom om in die teenwoordigheid van God 'n maaltyd te eet saam met Moses se skoonvader. Die volgende dag het Moses gaan sit om as regter op te tree vir die mense. Die mense het van die oggend af tot die aand toe om Moses gestaan. Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?” Moses het sy skoonvader geantwoord: “Omdat die mense na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n geskil het, kom dit voor my; dan beslis ek tussen die persoon en sy naaste, en maak God se vaste voorskrifte en wette bekend.” Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my! Ek sal vir jou raad gee, en mag God met jou wees! Tree jy vir die volk in by God, en bring jy die sake voor God. Waarsku hulle oor die vaste voorskrifte en wette, en lig hulle in oor die pad wat hulle moet volg en die werk wat hulle moet doen. Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat 'n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet te alle tye die volk se regsake behartig. Elke groot saak moet hulle na jou bring, maar oor elke klein saak moet hulle self beslis. Maak dit ligter vir jouself, en laat hulle saam met jou die las dra. As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy staande kan bly, en al hierdie mense sal ook tevrede na hulle blyplekke kan gaan.” Moses het na sy skoonvader geluister en alles gedoen wat hy gesê het. Moses het onder die hele Israel bekwame manne uitgesoek, en hulle as hoofde oor die volk aangestel, as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle het te alle tye die volk se regsake behartig. Die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar oor al die maklike sake het hulle self beslis. Moses het sy skoonvader weggesien, en hy het na sy eie land gegaan. In die derde maand ná die Israeliete se uittog uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die Sinaiwoestyn aangekom. Hulle het van Refidim af weggetrek, in die Sinaiwoestyn aangekom, en in die woestyn kamp opgeslaan. Israel het daar, reg voor die berg, kamp opgeslaan. Moses het opgeklim na God, en die Here het van die berg af na hom geroep en gesê: “So moet jy vir die huis van Jakob sê, sodat jy die Israeliete kan inlig, ‘Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het. As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. Vir My sal julle 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.” Moses het gegaan, die oudstes van die volk ontbied, en aan hulle al hierdie woorde wat die Here hom beveel het, voorgehou. Die hele volk het eenparig geantwoord; hulle het gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.” Moses het die volk se antwoord na die Here teruggeneem. Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan na jou kom in 'n digte wolk, sodat die volk kan hoor wanneer Ek met jou praat en hulle jou dan ook altyd kan vertrou.” Daarop het Moses die antwoord van die volk aan die Here oorgedra. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre. Laat hulle hulle klere was. Hulle moet gereed wees op die derde dag, want op die derde dag sal die Here, voor die oë van die hele volk, op die berg Sinai neerdaal. Baken rondom die berg 'n grens vir die volk af en sê vir hulle, ‘Wees versigtig dat julle nie teen die berg opklim, en selfs aan die voet daarvan raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word. Geen hand mag aan so iemand raak nie, maar hy moet beslis gestenig of met pyle geskiet word. Of dit nou 'n dier of 'n mens is, hy mag nie bly leef nie. Wanneer daar lank op die •ramshoring geblaas word, mag hulle teen die berg opklim.’ ” Moses het van die berg afgekom na die volk. Hy het die volk geheilig, en hulle het hulle klere gewas. Hy het vir die volk gesê: “Wees gereed op die derde dag; moenie naby 'n vrou kom nie.” Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderslae en weerlig en 'n swaar wolk oor die berg, en ook die baie harde geluid van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Moses het die volk uit die kamp uitgelei om God te ontmoet. Hulle het by die voet van die berg gaan staan. Die hele berg Sinai het in rook gestaan, omdat die Here in vuur daarop neergedaal het. Die rook het opgestyg soos rook uit 'n oond. Die hele berg het hewig geskud, en die geluid van die ramshoring het algaande baie harder geword. Moses het gepraat, en God het hom met 'n donderslag geantwoord. Toe die Here op die berg Sinai neergedaal het, op die kruin van die berg, het die Here vir Moses na die kruin van die berg geroep, en Moses het opgeklim. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af en waarsku die volk, anders breek hulle deur die grens na die Here om te kyk, en kom daar baie van hulle om. Ook die priesters wat gewoonlik die Here nader, moet hulleself heilig, anders slaan die Here hulle uitmekaar.” Moses het vir die Here gesê: “Die volk kan nie die berg Sinai uitklim nie, omdat U self ons gewaarsku het, ‘Baken die berg af en verklaar dit heilig.’ ” Die Here het hom geantwoord: “Gaan af, en kom dan weer op, jy en Aäron saam met jou. Maar die priesters en die volk moet nie deur die grens breek om na die Here op te klim nie, anders slaan Hy hulle uitmekaar.” Moses het toe afgegaan na die volk en dit vir hulle gesê. Toe het God al hierdie woorde gespreek: “ Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou •vreemdeling wat by jou is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig. Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie.” Toe die hele volk die donderslae hoor en die weerlig sien, asook die geluid van die •ramshoring, en die berg wat rook, was hulle bang en het gebewe. Hulle het op 'n afstand bly staan en vir Moses gesê: “Praat u met ons, en ons sal luister. Maar God moet nie met ons praat nie, sodat ons nie sterf nie.” Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want dit is om julle te toets dat God gekom het, sodat die ontsag vir Hom deel van julle lewe sal wees en julle nie sondig nie.” Die volk het op 'n afstand bly staan, en Moses het nader gegaan na die diepe duisternis waar God was. Die Here het vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, ‘Julle het self gesien dat Ek uit die hemel met julle praat. Julle mag nie gode van silwer en goud maak en naas My vereer nie; julle mag dit nie vir julle maak nie. 'n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop jou •brandoffers en jou •maaltydoffers, jou kleinvee en beeste slag. Op elke plek waar Ek toelaat dat my Naam genoem word, sal Ek na jou kom en jou seën. En as jy 'n altaar van klip vir My maak, mag jy dit nie bou met gekapte klip nie. As jy jou beitel daaroor beweeg, ontheilig jy dit. Jy mag nie met trappe op my altaar klim, dat jou naaktheid daarop ontbloot word nie.’ ” “Dit is die bepalings wat jy aan hulle moet voorhou: “ Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank werk, maar in die sewende jaar moet hy as 'n vry man weggaan, sonder om iets te betaal. As hy alleen was toe hy in diens getree het, moet hy alleen weggaan; as hy getroud was, moet sy vrou saam met hom weggaan. As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en moet hy alleen weggaan. As die slaaf egter uitdruklik sê, ‘Ek het my eienaar, my vrou en my kinders lief, ek wil nie as 'n vry man weggaan nie,’ moet sy eienaar hom na God bring. Hy moet hom na die deur of die deurkosyn bring, en daar moet sy eienaar sy oor met 'n els deursteek. Hy moet dan vir altyd vir hom werk. Wanneer 'n man sy dogter as 'n slavin verkoop, mag sy nie op dieselfde manier as die manlike slawe vrygelaat word nie. As haar eienaar, wat haar vir homself wou hê, haar onaanvaarbaar vind, moet hy haar laat vrykoop. Hy het nie die reg om haar aan enige vreemde volk te verkoop nie, omdat hy bedrieglik teenoor haar opgetree het. As hy haar vir sy seun wou hê, moet hy ooreenkomstig die reg van dogters teenoor haar optree. As hy vir hom 'n ander vrou neem, mag hy haar kos, haar klere en omgang met haar nie verminder nie. As hy hierdie drie dinge nie aan haar bied nie, mag sy weggaan sonder om enige geld te betaal. “Wie iemand só slaan dat hy sterf, moet beslis doodgemaak word. Maar as hy dit nie beplan het nie, en God dit beskik het dat hy 'n hand daarin het, dan sal Ek vir julle 'n plek aanwys waarheen hy kan vlug. Wanneer iemand egter met voorbedagte rade optree deur sy medemens met slinksheid om die lewe te bring, moet jy hom selfs van my altaar af wegneem om te sterf. Wie sy vader of moeder slaan, moet beslis sterf. Wie iemand ontvoer, en hom verkoop of nog in sy besit het, moet beslis sterf. Wie sy vader of moeder vervloek, moet beslis sterf. Wanneer mans rusie maak, en een slaan 'n ander met 'n klip of met die vuis, en hy nie sterf nie, maar bedlêend raak, sal die een wat geslaan het, vry wees as die man opstaan en met sy kierie buite rondloop. Hy moet hom net vergoed vir die tyd wat hy sonder verdienste was. Hy moet toesien dat hy ten volle herstel. Wanneer iemand sy slaaf of slavin met 'n stok só slaan dat hy onder sy hand sterf, moet dit beslis gewreek word. Maar as hy 'n dag of twee oorleef, moet dit nie gewreek word nie, want die slaaf is met sy geld gekoop. Wanneer mans baklei en hulle beseer 'n swanger vrou, sodat haar kind te vroeg gebore word, maar daar nie 'n ernstige besering is nie, moet die een wat haar beseer het, beslis die boete betaal wat die vrou se eggenoot hom oplê. Hy moet dit vasstel met die hulp van beregters. Maar as daar 'n ernstige besering is, moet jy bepaal: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet, 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond, 'n kneusplek vir 'n kneusplek. Wanneer iemand die oog van sy slaaf of slavin raakslaan en hy sy oog verloor, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die oog. As iemand die tand van sy slaaf of slavin uitslaan, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die tand. “Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou stoot, sodat die persoon sterf, moet die bees beslis gestenig word. Sy vleis mag nie geëet word nie, maar die eienaar van die bees is onskuldig. As die bees egter voorheen al stoterig was, en sy eienaar gewaarsku is, maar hy dit nie opgepas het nie, en die bees maak dan 'n man of vrou dood, moet die bees gestenig word, en ook sy eienaar moet sterf. As hy 'n losprys opgelê word, moet hy die afkoopprys vir sy lewe gee, soveel as wat hom opgelê word. Ook wanneer die bees 'n seun of 'n dogter stoot, moet daar ooreenkomstig hierdie bepaling teenoor die eienaar opgetree word. As dit 'n slaaf of slavin is wat deur die bees gedood is, moet daar dertig sikkel silwer vir hulle eienaar gegee word, en die bees moet gestenig word. Wanneer iemand 'n opgaarput oop laat, of iemand 'n opgaarput uitkap en dit nie bedek nie, en 'n bees of 'n donkie val daarin, moet die eienaar van die opgaarput vergoeding betaal. Hy moet vir die eienaar geld gee, en die dooie dier sal dan aan hom behoort. Wanneer iemand se bees sy medemens se bees stoot, en hy vrek, moet hulle die bees wat nog leef, verkoop en die geld deel. Ook die dooie bees moet hulle deel. Maar as dit bekend is dat die bees voorheen al bakleierig was, en sy eienaar hom nie opgepas het nie, moet hy beslis 'n bees gee as vergoeding vir die bees. Die dooie dier sal dan aan hom behoort. “ Wanneer iemand 'n bees of 'n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy daarvoor vergoed met vyf stuks grootvee vir 'n bees, en met vier stuks kleinvee vir 'n skaap. As 'n dief tydens 'n inbraak betrap word en só geslaan word dat hy sterf, is daar geen bloedskuld nie. As dit egter ná sonop gebeur, rus daar bloedskuld op die een wat hom geslaan het. 'n Dief moet volle vergoeding betaal. As hy niks besit nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word. As gesteelde goed wel lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbeld daarvoor vergoed, of dit nou 'n bees of 'n donkie of 'n skaap is. Wanneer iemand 'n veld of 'n wingerd laat bewei, en hy sy vee loslaat sodat hulle in iemand anders se veld wei, moet hy daarvoor vergoed, met die beste van sy veld of met die beste uit sy wingerd. As 'n brand uitbreek, dit na die dorings versprei, en stapels gerwe, of ongeoeste graan, of die land, afbrand, moet die een wat die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed. Wanneer iemand vir sy medemens silwer of goedere gee om te bewaar, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief dubbeld daarvoor vergoed as hy betrap word. As die dief nie betrap word nie, moet die eienaar van die huis voor God nader gebring word om vas te stel of hy nie sy hande op sy medemens se besittings gelê het nie. In enige geval van misdaad wat verband hou met 'n bees, 'n donkie, 'n skaap, klere of enige verlore eiendom waarvan iemand sê, ‘Dit is myne!’ moet die twee se saak voor God gebring word. Die een vir wie God skuldig verklaar, moet sy medemens dubbeld daarvoor vergoed. Wanneer iemand vir sy medemens 'n donkie, 'n bees, 'n skaap of enige ander dier gee om op te pas, en dit vrek, of word beseer, of dit word weggevoer sonder dat iemand dit sien, moet 'n eed voor die Here tussen die twee beslis. As die persoon nie sy hande op sy medemens se besitting gelê het nie, moet die eienaar dit aanvaar en hoef die ander persoon niks daarvoor te vergoed nie. Maar as dit wel van hom gesteel is, moet die persoon die eienaar vergoed. As die dier verskeur is, moet hy dit as bewys bring. Dan hoef hy nie vergoeding te betaal vir die verskeurde dier nie. Wanneer iemand 'n dier by sy medemens leen en die dier word beseer of vrek terwyl die eienaar nie teenwoordig is nie, moet hy die volle vergoeding daarvoor betaal. As die eienaar wel teenwoordig was, hoef hy nie vergoeding daarvoor te betaal nie. As dit 'n gehuurde dier was, dek die huurgeld die verlies. Wanneer iemand 'n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar slaap, moet hy beslis die bruidsprys vir haar betaal, sodat sy sy vrou word. As haar vader volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy die silwer afweeg wat ooreenstem met die bruidsprys vir jongmeisies. 'n Towenares mag jy nie laat leef nie. Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet beslis sterf. Iemand wat aan enige god offer, uitgesonderd die Here, moet onder die ban geplaas word. 'n •Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos. As jy aan my volk, aan die magteloses by jou, geld leen, mag jy nie teenoor hulle soos 'n skuldeiser optree nie: Julle mag nie van hulle rente eis nie. As dit wel sou gebeur dat jy jou medemens se oorkleed as pand neem, moet jy dit voor sononder vir hom teruggee, want dit is sy enigste bedekking; dit is die kleed waarmee hy sy vel bedek. Waarin moet hy slaap? Wanneer hy na My om hulp roep, sal Ek hoor; want Ek is genadig. God mag jy nie laster nie, en oor 'n leier in jou volk mag jy nie 'n vervloeking uitspreek nie. Offers uit jou volle graanoes en die opbrengs van jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My afstaan. Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee. Sewe dae lank moet die dier by sy ma bly, en op die agtste dag moet jy hom vir My gee. Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Vleis wat in die veld verskeur is, mag julle nie eet nie. Vir die honde moet julle dit gooi. “ Jy mag nie valse gerugte versprei nie. Moenie saamspan met 'n skuldige deur 'n kwaadwillige getuie te wees nie. Jy mag nie die meerderheid volg in verkeerde dade nie. Jy mag nie in 'n saak getuig en die reg verdraai deur jou by die meerderheid te skaar nie. 'n Arm persoon mag jy nie in sy regsaak bevoordeel nie. Wanneer jy afkom op jou vyand se bees of donkie wat ronddwaal, moet jy dit beslis na hom terugneem. Wanneer jy iemand wat jou haat se donkie onder sy vrag sien lê, mag jy dit nie aan hom oorlaat nie. Jy moet hom beslis daarmee help. Jy mag die reg van die behoeftiges by jou nie verdraai in hulle regsake nie. Van vals beskuldigings moet jy wegbly. Die onskuldige en regverdige moet jy nie om die lewe bring nie, want Ek sal 'n skuldige nie regverdig verklaar nie. Omkoopgeskenke mag jy nie aanvaar nie, want 'n omkoopgeskenk verblind hulle wat kan sien en verdraai die woorde van regverdiges. 'n •Vreemdeling mag jy nie verdruk nie. Julle weet self hoe dit voel om 'n vreemdeling te wees, want julle was vreemdelinge in Egipteland. “ Ses jaar lank mag jy jou lande saai en die opbrengs daarvan insamel; maar die sewende jaar moet jy dit onbewerk en braak laat lê, sodat die behoeftiges onder jou volk kan eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Jy moet dieselfde doen met jou wingerde en jou olyfboorde. Ses dae lank moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy ophou werk, sodat jou beeste en jou donkies kan rus, en jou slavinne se seuns en die vreemdelinge kan asemskep. Alles wat Ek vir julle gesê het, moet julle nakom. Die name van ander gode mag julle nie aanroep nie; dit mag nie uit julle monde gehoor word nie. Drie keer per jaar moet julle tot my eer 'n fees vier. Die Fees van die Ongesuurde Brood moet jy onderhou. Soos Ek jou beveel het, moet jy op die vasgestelde tyd in die maand Abib sewe dae lank ongesuurde brood eet; want in daardie maand het jy uit Egipte weggetrek. Niemand mag met leë hande voor My verskyn nie. Onderhou ook die Fees van die Oes met die eerste vrugte van jou arbeid, met dit wat jy in die land gesaai het. Onderhou ook die Fees van die Insameling aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid op die lande insamel. Drie keer per jaar moet al die manlike persone by jou voor die Heer, die Here, verskyn. Jy mag die bloed van my slagoffers nie offer saam met iets wat suurdeeg bevat nie. Die vet van die •feesoffer aan My mag nie tot die oggend oorstaan nie. Die keur van die eerste vrugte van jou grond moet jy na die huis van die Here jou God bring. Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.” “Kyk, Ek gaan 'n •engel voor jou uit stuur om jou op die pad te beskerm en jou te bring na die plek wat Ek gereedgemaak het. Wees versigtig, omdat hy teenwoordig is, en luister na sy stem. Moenie teen hom opstandig wees nie, want hy sal julle oortreding nie vergewe nie; hy tree immers in my Naam op. Maar as jy aandagtig luister na sy stem en alles doen wat Ek sê, sal Ek vyandig optree teenoor jou vyande en jou aanvallers aanval. “ Wanneer my engel voor jou uit gaan en jou neem na die •Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete, sal Ek hulle uitwis. Jy mag nie voor hulle gode in aanbidding buig nie en jy mag hulle nie dien nie. Jy mag hulle dade nie nadoen nie, maar jy moet hulle godebeelde heeltemal vernietig en hulle gedenkstene in stukke breek. Julle moet die Here julle God dien. Hy sal jou voedsel en water seën. Ek sal siektes uit jou midde verwyder. Geen vrou sal in jou land 'n miskraam hê of onvrugbaar wees nie. Ek sal jou 'n lang lewe gee. “Die vrees vir My sal Ek voor jou uit stuur en Ek sal elke volk by wie jy kom, in verwarring bring. Ek sal sorg dat al jou vyande die hakskene vir jou wys. Ek sal 'n vlaag paniek voor jou uit stuur, en dit sal die Hewiete, die Kanaäniete en die Hetiete voor jou uit verdryf. “ Ek sal hulle egter nie in een jaar voor jou uit verdryf nie, anders word die land 'n woesteny en die wilde diere te veel vir jou. Ek sal hulle stuk vir stuk voor jou uit verdryf, totdat jy so vrugbaar is dat jy die land as erfdeel kan ontvang. Ek sal jou grense vasstel vanaf die Rietsee tot by die See van die Filistyne, en vanaf die woestyn tot by die Rivier, want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdryf. “ Jy mag nie met hulle of hulle gode 'n verbond sluit nie. Hulle mag in jou land nie woon nie, anders laat hulle jou teen My sondig. Want jy sal hulle gode dien; ja, dit sal vir jou 'n valstrik word.” Vir Moses het Hy gesê: “Klim op na die Here, jy en Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel, maar buig van ver af al in aanbidding. Moses alleen mag nader aan die Here gaan; hulle mag egter nie nader gaan nie, en die volk mag nie saam met hom opklim nie.” Moses het gegaan en aan die volk al die woorde van die Here, en al die bepalings oorgedra. Die hele volk het eenstemmig geantwoord en gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.” Moses het al die woorde van die Here neergeskryf. Hy het vroeg die oggend opgestaan en aan die voet van die berg 'n altaar opgerig en twaalf gedenkstene vir die twaalf stamme van Israel. Hy het jong manne uit die Israeliete gestuur, en hulle het •brandoffers geoffer, en vir die Here bulle geslag as •maaltydoffers. Moses het die helfte van die bloed geneem en in bakke gegooi. Die ander helfte van die bloed het hy teen die altaar gesprinkel. Toe neem hy die Boekrol van die Verbond en lees dit duidelik hoorbaar aan die volk voor. Hulle het gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen en gehoorsaam.” Moses het toe die bloed geneem en dit oor die volk gesprinkel en gesê: “Kyk, dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle sluit op grond van al hierdie woorde.” Daarna het Moses en Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel die berg uitgeklim. Hulle het die God van Israel gesien. Onder sy voete was dit soos 'n plaveisel van •lasuursteen, so helder soos die hemelruim self. Teen hierdie vernames van die Israeliete het God sy hand nie uitgesteek nie. Hulle het God aanskou en toe geëet en gedrink. Die Here het vir Moses gesê: “Kom na My toe op die berg en bly daar. Ek sal vir jou die kliptafels gee met die wet, met die opdragte wat Ek geskryf het, om hulle te onderrig.” Moses en Josua, sy helper, het gereedgemaak, en Moses het die berg van God uitgeklim. Vir die oudstes het hy gesê: “Wag hier vir ons, totdat ons na julle terugkom. Kyk, Aäron en Hur is by julle, en wie ook al regsake het, kan na hulle toe gaan.” Moses het die berg uitgeklim en die wolk het die berg bedek. Die heerlikheid van die Here het op die berg Sinai vertoef en die wolk het die berg ses dae lank bedek. Die Here het op die sewende dag uit die wolk na Moses geroep. Die heerlikheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos 'n verterende vuur op die kruin van die berg. Moses het in die wolk ingegaan en die berg verder uitgeklim. Moses was veertig dae en veertig nagte lank op die berg. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete, sodat hulle vir My 'n •wydingsgeskenk bring. Van elkeen wie se hart hom daartoe aanspoor, moet julle vir My 'n wydingsgeskenk aanvaar. Dit is die wydingsgeskenk wat julle van hulle moet aanvaar: goud, silwer en brons; pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar; rooi gekleurde ramsvelle, sagte leer en doringhout; olie vir die ligte, speserye vir die salfolie en vir die geurige reukwerk; •oniksstene en edelstene as monterings vir die efod en die borstas. “Hulle moet vir my 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan vertoef. Volgens alles wat Ek vir jou gaan wys – die voorbeeld van die •tabernakel en die voorbeeld van al sy toebehore – presies so moet julle dit maak. “ Hulle moet 'n ark van doringhout maak. Dit moet twee en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een en 'n half el hoog wees. Jy moet dit met suiwer goud oortrek, aan die binnekant en aan die buitekant moet jy dit oortrek. Dan moet jy aan die bokant, reg rondom, 'n goue rand aanbring. Jy moet vier goue ringe daarvoor giet en dit aan die vier pote heg – twee ringe aan die een kant en twee aan die ander kant. Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark steek om die ark daarmee te dra. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; dit mag nie daaruit verwyder word nie. “ Jy moet die Getuienis wat Ek vir jou sal gee, in die ark sit. Jy moet 'n versoendeksel van suiwer goud maak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. Dan moet jy twee gerubs van goud maak, met pletwerk moet jy hulle op die twee punte van die versoendeksel maak. Maak een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel moet jy die gerubs op die twee punte maak. Die gerubs moet so wees dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel beskut met hulle vlerke. Met hulle gesigte na mekaar moet die gerubs na die versoendeksel kyk. Jy moet die versoendeksel bo-op die ark neersit, en in die ark moet jy die Getuienis plaas wat Ek jou sal gee. Daar sal Ek jou ontmoet. Van bo die versoendeksel af, van tussen die twee gerubs wat op die ark met die Getuienis is, sal Ek met jou praat oor al die opdragte vir die Israeliete wat Ek jou gaan gee. “Jy moet 'n tafel van doringhout maak, twee el lank, een el breed en een en 'n half el hoog. Jy moet dit met suiwer goud oortrek en reg rondom 'n goue rand vir die tafel maak: Maak reg rondom 'n strook van een handbreedte, en bring dan op die strook 'n goue randversiering aan. Jy moet vier goue ringe daarvoor maak, en die ringe dan aan die vier hoeke van die vier pote vassit. Die ringe moet naby die strook wees, as houers vir die draaghoute om die tafel mee te dra. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek, sodat die tafel daarmee gedra kan word. “Jy moet skottels, bakke, bekers en komme, waarmee •drankoffers uitgegiet word, daarvoor maak. Van suiwer goud moet jy dit maak. Jy moet dan die vertoonbrode op die tafel plaas sodat dit die hele tyd voor My sal wees. “Jy moet 'n menora van suiwer goud maak. Met pletwerk moet jy die menora – dit is sy voetstuk en sy staander – maak. Die kelke, blomknoppe en blomme moet deel daarvan wees. Ses arms moet uit die kante vertak, drie arms van die menora uit die een kant en drie arms van die menora uit die ander kant. Daar moet drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op een arm wees; en drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op elke volgende arm. So moet dit wees aan die ses arms wat uit die menora vertak. Op die menora self moet daar vier kelke wees, gevorm soos amandelbloeisels met hulle blomknoppe en blomme. Vir die ses arms wat uit die menora vertak, moet daar 'n blomknop wees onder aan die eerste twee arms, 'n blomknop onder aan die tweede twee arms, en 'n blomknop onder aan die derde twee arms. Die blomknoppe en arms moet deel wees van die staander, die geheel daarvan geplet uit suiwer goud. “ Jy moet sewe lampe daarvoor maak. Jy moet sy lampe so plaas dat dit aan die voorkant lig verskaf. Die snuiters en bakkies daarvan moet van suiwer goud wees. “Van 'n kikkar suiwer goud moet jy dit maak – ook al hierdie toebehore. Sorg dat jy dit maak volgens die voorbeelde wat aan jou op die berg gewys gaan word.” “Die •tabernakel moet jy van tien tentdoeke fyn dubbeldraadlinne en pers, purperrooi en karmosynrooi wol maak, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. Die lengte van elke tentdoek moet agt-en-twintig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke moet dieselfde afmetings hê. Vyf van die tentdoeke moet aan mekaar vasgewerk word, en so ook die ander vyf tentdoeke. Jy moet lussies van pers wol op die soom van die een tentdoek aanbring – al langs die kant op die een stel. Op dieselfde manier moet jy ook lussies op die tweede stel aanbring op die soom van die buitenste tentdoek. Jy moet vyftig lussies op die een tentdoek aanbring, en vyftig lussies op die kant van die tentdoek aan die tweede stel. Die lussies moet regoor mekaar wees. Jy moet vyftig goue hakies maak en die tentdoeke met die hakies aan mekaar vasmaak, sodat die tabernakel een geheel vorm. “Jy moet tentdoeke van bokhaar maak om te dien as 'n tent oor die tabernakel. Elf van hierdie tentdoeke moet jy daarvoor maak. Elke tentdoek moet dertig el lank wees en vier el breed. Die elf tentdoeke moet dieselfde afmetings hê. Jy moet vyf tentdoeke aan mekaar vaswerk om 'n eenheid te vorm, en so ook die ander ses tentdoeke. Aan die voorkant van die tent moet jy die sesde tentdoek in die helfte terugvou. Jy moet vyftig lussies aanbring op die soom van die een buitenste tentdoek van die een stel en vyftig lussies op die soom van die tweede stel tentdoeke. Jy moet vyftig bronshakies maak en die hakies deur die lussies steek, en so die tent heg, sodat dit een geheel vorm. Die oortollige deel van die ekstra strook wat aan die tent se tentdoeke is, dit wil sê die helfte van die strook wat ekstra is, moet aan die agterkant van die tabernakel hang. Die ekstra el aan albei kante op die lengte van die tent se tentdoeke, moet oor die sykante van die tabernakel hang, om die tabernakel aan weerskante te bedek. “Jy moet vir die tent 'n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle maak en nog 'n bedekking van sagte leer bo-oor. “Jy moet vir die tabernakel planke van doringhout maak wat regop moet staan. Elke plank moet tien el lank wees, en een en 'n half el breed. Daar moet twee tappe wees in elke plank waarmee hulle teen mekaar geplaas kan word. Doen dit met al die planke van die tabernakel. Jy moet vir die suidekant van die tabernakel twintig planke maak. Veertig silwervoetstukke moet jy dan onder die twintig planke aanbring – twee voetstukke onder een plank vir sy twee tappe, en twee voetstukke onder die ander plank vir sy twee tappe. Vir die ander sykant, aan die noordekant van die tabernakel, moet daar ook twintig planke wees, met hulle veertig silwervoetstukke – twee voetstukke onder elk van die planke. “Vir die agterkant van die tabernakel, aan die westekant, moet jy ses planke maak. Dan moet jy twee planke maak vir elk van die twee agterste hoeke van die tabernakel. Hulle moet van onder af teen mekaar pas en 'n hegte eenheid vorm tot bo by die een ring. Dit is hoe al twee moet wees om die twee agterste hoeke te vorm. Daar moet agt sulke hoekplanke wees met hulle silwervoetstukke; dit is sestien voetstukke – twee voetstukke onder elk van die hoekplanke. “Jy moet ook dwarshoute van doringhout maak, vyf rye vir die planke aan die een sykant van die tabernakel, en vyf rye dwarshoute vir die planke aan die ander sykant van die tabernakel, asook vyf rye dwarshoute vir die planke aan die agterkant van die tabernakel, aan die westekant. Die middelste ry dwarshoute moet in die middel van die planke wees; dit moet deurloop van die een kant na die ander kant. Die planke moet jy met goud oortrek, en die ringe van die planke, wat die dwarshoute dra, moet jy van goud maak. Jy moet die dwarshoute ook met goud oortrek. “ Jy moet dan die tabernakel oprig volgens die model wat vir jou op die berg gewys is. “Jy moet 'n voorhangsel maak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. Jy moet dit met goue hakies ophang aan vier staanders van doringhout wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. Jy moet die voorhangsel aan die hakies, aan die onderkant, ophang. Neem dan die ark met die Getuienis daarheen, agter die voorhangsel in. Die voorhangsel moet vir julle die heilige deel van die tabernakel van die allerheiligste deel skei. Jy moet die versoendeksel op die ark met die Getuienis in die Allerheiligste plaas. Dan moet jy die tafel voor die voorhangsel neersit, en die menora aan die suidekant van die tabernakel, teenoor die tafel. Die tafel moet jy aan die noordekant plaas. “Jy moet vir die ingang van die tent 'n gordyn maak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n borduurder. Jy moet vir die gordyn vyf staanders van doringhout maak en dit met goud oortrek; hulle hakies moet ook van goud wees en jy moet vyf bronsvoetstukke daarvoor giet.” “Jy moet 'n altaar van doringhout maak, vyf el lank en vyf el breed; die altaar moet vierkantig wees en drie el hoog. Jy moet daarvoor horings maak op elk van die vier hoeke. Die horings moet deel daarvan wees, en jy moet die altaar met brons oortrek. Jy moet houers daarvoor maak om die vetterige as mee te verwyder, asook skoppies, offerbakke, vurke en vuurpanne. Al die altaar se toebehore moet jy van brons maak. Jy moet 'n traliewerk daarvoor maak, 'n maaswerk van brons. Maak dan vier bronsringe op die hoeke van die maaswerk. Dan moet jy dit onder die rand van die altaar vassit, aan die onderkant, sodat die maaswerk tot by die helfte van die altaar strek. Jy moet ook draaghoute vir die altaar maak, draaghoute van doringhout, en dit met brons oortrek. Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word, sodat daar draaghoute aan al twee kante van die altaar is wanneer dit gedra word. Jy moet die altaar van planke maak, hol aan die binnekant. Soos Hy jou op die berg gewys het, presies so moet hulle dit maak.” “Jy moet 'n binneplein vir die •tabernakel maak. Aan die suidekant moet die behangsels vir die binneplein van fyn dubbeldraadlinne wees, 'n honderd el lank vir die een kant. Dit moet twintig staanders met hulle twintig bronsvoetstukke hê, maar die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees. Net so moet daar aan die noordekant behangsels oor 'n lengte van honderd el wees, met twintig staanders en bronsvoetstukke, en die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees. Oor die breedte van die binneplein aan die westekant moet daar vyftig el behangsels wees, met hulle tien staanders en tien voetstukke. Die breedte van die binneplein aan die voorkant, die oostekant, moet vyftig el wees. Die behangsels langs die ingang moet vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke. Aan die ander kant moet die behangsels vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke. By die ingang van die binneplein moet daar 'n gordyn van twintig el wees, gemaak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n borduurder – met vier staanders en vier voetstukke. “Al die staanders rondom die binneplein moet van silwerhegplekke voorsien word; hulle hakies moet van silwer en hulle voetstukke van brons wees. Die lengte van die binneplein moet honderd el wees, die breedte regdeur vyftig el, en die hoogte vyf el, die behangsels gemaak van fyn dubbeldraadlinne, en met bronsvoetstukke. “Wat al die toebehore van die tabernakel betref: Alles vir die dienswerk in die tabernakel, asook al die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die binneplein, moet van brons wees.” “ Jy self moet die Israeliete beveel dat hulle vir jou suiwer geparste olyfolie bring vir lig, sodat die lampe voortdurend kan brand. In die Tent van Ontmoeting, buite die voorhangsel wat voor die Getuienis hang, moet Aäron en sy seuns die kandelaar gereedmaak om van die aand tot die oggend te brand voor die Here. Dit is 'n vaste verpligting wat van die kant van die Israeliete op die nageslag van Aäron en sy seuns rus. ” “ Jy self moet dan jou broer Aäron en sy seuns saam met hom uit die geledere van die Israeliete na jou laat nader kom, sodat hy as priester vir My kan optree. Dit is Aäron, en ook Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron. Jy moet heilige klere vir jou broer Aäron maak, ter wille van waardigheid en as versiering. Dan moet jy self ook praat met almal wat vaardig is, vir wie Ek met 'n wyse gees vervul het, sodat hulle Aäron se klere kan maak vir sy wyding om vir My as priester op te tree. “ Dit is die klere wat hulle moet maak: 'n borstas, 'n efod, 'n mantel, 'n omsoomde priesterrok, 'n tulband en 'n lyfserp. Hulle moet heilige klere maak vir Aäron, jou broer, en ook vir sy seuns, sodat hulle vir My as priesters kan optree. “ Daardie manne moet daarvoor gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyngeweefde linne ontvang. Hulle moet dan die efod maak van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n vakman. Dit moet twee skouerbande hê, vasgeheg aan die twee hoeke. Dit moet vasgewerk wees. 'n Versierde gordel wat daaroor kom, moet deel daarvan wees, en op dieselfde manier as die efod gemaak word van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne. “ Jy moet twee •oniksstene neem en die name van die seuns van Israel daarop graveer: ses van die name op die een steen, en die name van die oorblywende ses op die tweede steen, in die volgorde van hulle geboorte. Met die vakmanskap van 'n bewerker van edelstene moet jy, soos wanneer op 'n seëlring gegraveer word, die twee stene met die name van die seuns van Israel graveer. Jy moet dit dan vassit, omring met monterings van gouddraad. Sit die twee stene vas op die skouerbande van die efod as stene ter herinnering aan die seuns van Israel. Aäron moet hulle name voor die Here op sy skouers dra as 'n herinnering. Jy moet die monterings van gouddraad maak, en ook twee kettinkies van suiwer goud. Gevleg, op dieselfde wyse as touwerk, moet jy hulle maak, en dan die touvormige kettinkies aan die monterings heg. “ Dan moet jy 'n borstas vir beslissing maak – met die kundigheid van 'n vakman. Soos in die geval van die efod, moet jy dit van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne maak. Dit moet vierkantig gevou word, 'n span lank en 'n span breed. Jy moet daarop 'n montering met vier rye edelstene vassit: 'n •karneool, 'n •topaas en 'n smarag in die eerste ry; in die tweede ry 'n •malagiet, 'n •lasuursteen en 'n •akwamaryn; in die derde ry 'n •hiasint, 'n •agaat en 'n •ametis; en in die vierde ry 'n •chrisoliet, 'n •oniks en 'n •jaspis. Hulle moet met gouddraad versier word in hulle monterings. Die stene moet gerangskik wees volgens die name van die seuns van Israel – twaalf, in ooreenstemming met hulle name. Met gravering soos op 'n seëlring moet elke steen sy naam kry, in ooreenstemming met die twaalf stamme. Jy moet aan die borstas kettinkies maak met suiwer goud, gevleg op dieselfde wyse as touwerk. Jy moet twee goue ringe aan die borstas aanbring. Sit die twee ringe vas aan die twee hoeke van die borstas. Jy moet die twee goue koorde aan die twee ringe op die hoeke van die borstas vasheg, en die twee ander punte van die twee koorde moet jy aan die twee monterings vasheg en dit dan aan die voorkant van die skouerbande van die efod heg. Jy moet twee goue ringe maak en dit aan die twee ander hoeke van die borstas vassit, aan die binnerand, teen die efod. Jy moet nog twee goue ringe maak en hulle vasheg aan die onderkant van die twee skouerbande van die efod, aan die voorkant naby die hegpunt van die skouerbande, bo die band van die efod. Die borstas moet met sy ringe aan die efod se ringe vasgemaak word, met 'n draad pers wol, sodat dit aan die band van die efod kan bly en die borstas nie van die efod af wegskuif nie. “ So moet Aäron die name van die seuns van Israel bo sy hart op die borstas vir beslissing dra, as 'n durende herinnering voor die Here, wanneer hy die heiligdom binnegaan. “Jy moet in die borstas vir beslissing die Urim en Tummim plaas – dit moet bo Aäron se hart wees wanneer hy daar voor die Here ingaan. Aäron moet die middele vir beslissing vir die Israeliete altyd bo sy hart dra voor die Here. “ Jy moet die hele mantel van die efod van pers wol maak. Die opening vir die kop moet in die middel daarvan wees. 'n Soom moet rondom die opening aangebring word – met die kundigheid van 'n wewer. Dit moet soos die opening in 'n gevegsmondering wees, sodat dit nie kan skeur nie. Op die soomnate van die mantel moet jy granate borduur met pers, purperrooi en karmosynrooi wol – op al die soomnate reg rondom – en met goue klokkies tussenin: 'n goue klokkie en 'n granaat, 'n goue klokkie en 'n granaat, reg rondom op die soomnate van die mantel. Aäron moet dit aanhê om dienswerk te kan doen. Die geluid van die klokkies moet gehoor word wanneer hy die heiligdom binnegaan, voor die Here, en wanneer hy uitgaan, sodat hy nie sterf nie. “Jy moet 'n roset van suiwer goud maak en daarop graveer, soos wanneer 'n seëlring gegraveer word, ‘Heilig vir die Here. ’ Jy moet dit aan 'n draad pers wol vasbind, sodat dit op die tulband kan wees. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees. Dit moet op Aäron se voorkop wees, sodat Aäron enige skuld in verband met die •heilige gawes wat die Israeliete aan die Here wy, kan wegneem. Dit geld vir al hulle heilige geskenke. Die roset moet voortdurend op sy voorkop wees, sodat hulle voor die Here aanvaarbaar sal wees. Weef die priesterrok in ruitpatroon met fyn linne. Dan moet jy 'n tulband van fyn linne maak. 'n Lyfserp moet jy ook maak – met die kundigheid van 'n borduurder. “ Vir Aäron se seuns moet jy priesterrokke maak. Jy moet ook vir hulle lyfserpe en kopdoeke maak. Jy moet dit vir hulle maak ter wille van waardigheid en as versiering. “ Jy moet hulle aantrek, Aäron, jou broer, en sy seuns saam met hom. Dan moet jy hulle salf, hulle wy en hulle heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree. Jy moet vir hulle linnebroeke maak om hulle geslagsdele te bedek. Dit moet van die heupe tot die dye strek. Aäron en sy seuns moet dit aanhê wanneer hulle die Tent van Ontmoeting binnegaan, of wanneer hulle nader kom na die altaar om dienswerk te doen in die heiligdom, sodat hulle nie skuld op hulle laai en sterf nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hom en vir sy nageslag ná hom.” “Dit is wat jy met hulle moet doen om hulle te heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree: Neem een jong bul en twee ramme sonder gebrek, en ongesuurde brood en ongesuurde ringbrode wat met olyfolie gemeng is, asook ongesuurde platbrode wat met olyfolie gesmeer is. Van gesifte koringmeel moet jy dit bak. Jy moet dit in een mandjie sit en dit in die mandjie naderbring, saam met die bul en die twee ramme. Aäron en sy seuns moet jy na die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat nader kom en hulle met water afspoel. Jy moet die klere neem en vir Aäron die priesterrok, die mantel van die efod, die efod en die borstas aantrek, en dan vir hom die efod styf vasmaak met die band. Jy moet die tulband op sy kop sit en die heilige wydingsteken op die tulband vassit. Jy moet die salfolie neem, dit oor sy kop uitgiet en hom salf. Dan moet jy sy seuns laat nader kom, hulle priesterrokke vir hulle aantrek en die lyfserpe vir hulle, Aäron en sy seuns, ombind. Jy moet hulle kopdoeke vir hulle vasbind. Die priesterdiens sal hulle s'n wees as 'n vaste voorskrif wat altyd geld. So moet jy Aäron en sy seuns wy. “Jy moet die bul tot voor die Tent van Ontmoeting bring. Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop plaas, en dan moet jy die bul voor die Here slag by die ingang van die Tent van Ontmoeting. Jy moet van die bul se bloed neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar smeer. Die res van die bloed moet jy teen die basis van die altaar uitgooi. Jy moet al die vet wat die binnegoed bedek, neem, ook die lewerlob en die twee niere met die vet daaraan, en dit op die altaar verbrand. Maar die vleis van die bul, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp verbrand. Dit is 'n •reinigingsoffer. Die een ram moet jy neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. Dan moet jy die ram slag, sy bloed neem en dit reg rondom teen die altaar sprinkel. Die ram moet jy in stukke opsny, sy binnegoed en pote afspoel, en dit by die stukke en sy kop neersit. Jy moet die hele ram op die altaar verbrand. Dit is 'n •brandoffer vir die Here. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Jy moet die tweede ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. Dan moet jy die ram slag, van sy bloed neem en dit aan Aäron se regteroorlel smeer, ook aan dié van sy seuns, aan die duime van hulle regterhande en aan die groottone van hulle regtervoete. Jy moet die res van die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Jy moet van die bloed wat teen die altaar is, neem, en ook van die salfolie, en dit op Aäron en sy klere sprinkel, en ook op sy seuns by hom en op sy seuns se klere. Hy en sy klere en saam met hom sy seuns en hulle klere sal dan heilig wees. “ Jy moet uit die ram die vet neem, die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, die lewerlob, die twee niere en die vet wat daaraan is, en ook die regterboud – want dit is die ram vir die priesterwyding – asook een ronde brood, een ongesuurde brood wat met olyfolie klam gemaak is, en een platbrood uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor die Here is. Jy moet dit alles op die handpalms van Aäron en die handpalms van sy seuns plaas, en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dan moet jy dit van hulle hande neem en op die altaar verbrand bo-op die brandoffer as 'n geurige offer voor die Here. Dit is 'n offergawe aan die Here. “Jy moet die borsstuk uit die ram vir die priesterwyding van Aäron neem, en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is dan jou deel. “ Jy moet dit wat Aäron en sy seuns uit die ram vir die priesterwyding toekom, heilig verklaar: die borsstuk van die gewyde gawe wat heen en weer beweeg is, en die boud van die •wydingsgeskenk wat aangebied is. Dit kom Aäron en sy seuns toe as 'n deel wat hulle altyd moet kry van die kant van die Israeliete, want dit is 'n wydingsgeskenk. Dit moet 'n wydingsgeskenk wees van die kant van die Israeliete uit hulle •maaltydoffers, hulle wydingsgeskenk aan die Here. “ Die heilige klere wat aan Aäron behoort, moet aan sy seuns ná hom gaan, om daarin gesalf te word en daarin gewy te word. Die een onder sy seuns wat priester word in sy plek en wat die Tent van Ontmoeting binnegaan om in die heiligdom dienswerk te doen, moet die klere sewe dae lank dra. “ Die ram vir die priesterwyding moet jy neem en sy vleis in 'n heilige plek kook. Aäron en sy seuns moet by die ingang van die Tent van Ontmoeting die vleis van die ram eet, en ook die brood wat in die mandjie oor is. Hulle moet dit eet waarmee versoening gedoen is om hulle te wy en te heilig; 'n buitestander mag egter nie daarvan eet nie, omdat dit heilig is. As daar van die vleis vir die priesterwyding, of van die brood, tot die oggend oorstaan, moet jy die oorskiet verbrand. Dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig. “ Jy moet met Aäron en sy seuns so maak, net soos Ek jou beveel het. Jy moet sewe dae neem om hulle te wy. 'n Bul moet jy elke dag as reinigingsoffer bring vir versoening. Jy moet die altaar reinig wanneer jy daarvoor versoening doen, en dit salf om dit te heilig. Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. Die altaar sal besonder heilig wees; elkeen wat aan die altaar raak, sal heilig word. Dit is wat jy gereeld, elke dag, op die altaar moet offer: twee jaaroud ramlammers. Die een lam moet jy in die oggend offer en die tweede lam teen laatmiddag, met 'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie, en 'n kwart hin wyn as •drankoffer vir die eerste lam. Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend en die bypassende drankoffer, moet jy dit bring as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Dit moet 'n gereelde •brandoffer wees vir julle nageslagte by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here, waar Ek julle sal ontmoet om met jou te praat. Ek sal die Israeliete daar ontmoet, en die plek sal geheilig word deur my heerlike teenwoordigheid. Ek sal die Tent van Ontmoeting en die altaar heilig. Aäron en sy seuns sal Ek heilig om vir My as priesters op te tree. Ek sal onder die Israeliete vertoef en vir hulle 'n God wees. Hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is, wat hulle uit Egipteland gelei het om onder hulle te vertoef. Ek is die Here hulle God.” “ Jy moet 'n altaar maak vir die brand van reukwerk; van doringhout moet jy dit maak. Dit moet 'n el lank en 'n el breed wees. Dit moet vierkantig en twee el hoog wees. Die horings moet deel daarvan wees. Jy moet dit met suiwer goud oortrek – die bokant, die kante reg rondom en die horings daarvan. Jy moet daarvoor 'n goue rand maak, reg rondom. Twee goue ringe moet jy daarvoor maak, aan die twee sykante onder die rand. Jy moet dit aan weerskante maak, sodat dit kan dien as houers vir die draaghoute waarmee dit gedra word. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Jy moet die altaar neersit voor die voorhangsel wat by die ark met die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek jou sal ontmoet. “ Aäron moet die geurige reukwerk op die altaar laat brand. Elke oggend wanneer hy die lampe versorg, moet hy dit laat brand. As Aäron laatmiddag die lampe opsteek, moet hy dit as reukwerk voortdurend voor die Here laat brand. Dit geld ook vir julle nageslagte. “Julle mag nie vreemde reukwerk laat brand, 'n •brandoffer of 'n •graanoffer daarop bring nie. 'n •Drankoffer mag julle ook nie daarop uitgiet nie. “Aäron moet een keer per jaar op die horings daarvan versoening doen. Met die bloed van die •reinigingsoffer vir die versoening moet hy een keer per jaar daarop versoening doen. Dit geld ook vir julle nageslagte. Die altaar is besonder heilig vir die Here. ” Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Wanneer jy 'n hoofdelike telling hou van die Israeliete, van dié wat ingeskryf is, moet elkeen van hulle vir die Here losgeld vir sy lewe gee wanneer hulle getel word, sodat wanneer hulle getel word, daar geen plaag onder hulle sal uitbreek nie. Dit is wat elkeen moet gee wanneer hy getel is: 'n halwe sikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, – twintig gera is 'n sikkel. Die halwe sikkel is 'n •wydingsgeskenk aan die Here. Elkeen wat getel is, van twintig jaar en ouer, moet die Here se wydingsgeskenk gee. Rykes moet nie meer gee nie, en armes nie minder nie as die halwe sikkel wat gegee moet word as die Here se wydingsgeskenk om versoening te doen vir julle lewens. Jy moet die silwer vir die versoening van die Israeliete in ontvangs neem, en dit gebruik vir die dienswerk in die Tent van Ontmoeting. Dit sal vir die Israeliete dien as herinnering voor die Here om versoening te doen vir julle lewens.” Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Jy moet 'n bronswaskom met sy bronsvoetstuk maak om uit af te spoel. Jy moet dit tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar plaas. Jy moet water daarin gooi, sodat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan afspoel. Wanneer hulle in die Tent van Ontmoeting ingaan, moet hulle hulleself met water afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Of wanneer hulle naby die altaar kom om dienswerk te doen, om 'n offergawe vir die Here te verbrand, moet hulle hulle hande en voete afspoel, sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n vaste reël wat altyd geld vir Aäron en sy nageslag, vir al hulle nageslagte.” Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Neem jy self keurgraad speserye: 500 sikkel verpoeierde mirre, die helfte soveel geurige kaneel – dit is 250 sikkel – en 250 sikkel geurige riet, asook 500 sikkel kassia, volgens die standaardgewig in die heiligdom, met 'n hin olyfolie. Jy moet daarvan heilige salfolie maak, met die kundigheid van 'n salfmenger – 'n besondere mengsel. Dit moet heilige salfolie wees. Jy moet daarmee die Tent van Ontmoeting en die ark met die Getuienis salf, asook die tafel en al sy toebehore, die menora en sy toebehore, die altaar vir die reukwerk, die brandofferaltaar met al sy toebehore en die waskom met sy voetstuk. Jy moet dit heilig, dan sal dit besonder heilig wees; elkeen wat daaraan raak, sal heilig word. “ Ook Aäron en sy seuns moet jy salf en hulle heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree. “Met die Israeliete moet jy praat en vir hulle sê, ‘Dit moet my gewyde salfolie wees vir al julle nageslagte. Op die liggaam van 'n gewone mens mag dit nie uitgegiet word nie, en met dieselfde bestanddele mag julle nie iets soortgelyks maak nie. Dit is heilig, en dit moet vir julle heilig wees. Iemand wat iets soortgelyks voorberei, of wat daarvan op 'n buitestander laat kom, sal van sy volk afgesny word. ’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Neem vir jou geurige stowwe: harpuis, skellak, vinkel, hierdie geurige stowwe, en suiwer wierook. Dit moet gelyke hoeveelhede wees. Jy moet reukwerk daarvan maak, met sout by, suiwer en heilig – 'n mengsel gemaak met die kundigheid van 'n salfmenger. Jy moet daarvan fynstamp tot 'n poeier en daarvan voor die Getuienis in die Tent van Ontmoeting plaas, waar Ek jou sal ontmoet. Dit moet vir julle besonder heilig wees. “Die reukwerk wat jy moet maak, mag julle nie vir julleself maak van dieselfde bestanddele nie. Dit moet vir jou heilig aan die Here wees. Iemand wat iets soortgelyks maak om die geur te geniet, moet van sy volk afgesny word.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Kyk, Ek het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam geroep. Ek het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, insig en kennis, en met al die nodige vakmanskap, om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons, en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout, om dit te doen met al die nodige vakmanskap. “En Ek, kyk, Ek het Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan, as sy bystand gegee; en in die hart van elkeen wat vaardig is, het Ek wysheid gegee, sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het: die Tent van Ontmoeting, die ark vir die Getuienis, die versoendeksel wat daarop kom, al die toebehore van die tent, die tafel en sy toebehore, die menora van suiwer goud en al sy toebehore, die altaar vir die reukwerk, die brandofferaltaar en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk, die geweefde klere – dit is die heilige klere vir Aäron, die priester, en die klere van sy seuns, vir die priesterdiens – die salfolie en die geurige reukwerk vir die heiligdom. Net soos Ek jou beveel het, moet hulle dit maak.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy self moet vir die Israeliete sê, ‘My Sabbatte moet julle beslis onderhou, want dit dien as 'n teken tussen My en julle vir al julle komende geslagte, sodat julle kan weet dat Ek, die Here, die Een is wat julle heilig. Julle moet die Sabbat onderhou, want dit is heilig vir julle. Wie dit ontheilig, moet beslis sterf. As enigiemand op dié dag werk, moet daardie persoon onder sy volk uitgeroei word. Ses dae lank mag daar gewerk word, maar op die sewende dag is dit 'n buitengewone Sabbat, gewy aan die Here. Elkeen wat op die Sabbatdag werk doen, moet beslis sterf. Die Israeliete moet die Sabbat onderhou deur die Sabbat in hulle komende geslagte te vier as 'n ewige verbond. Dit dien as 'n ewige teken tussen My en die Israeliete. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en is Hy verkwik.’ ” Nadat die Here klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom op die berg Sinai die twee tafels met die Getuienis gegee – kliptafels waarop daar deur die vinger van God geskryf is. Toe die volk merk dat Moses lank neem om van die berg af te kom, het die volk by Aäron byeengekom en vir hom gesê: “Komaan, maak vir ons gode wat voor ons uit kan gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat met hom gebeur het nie.” Aäron sê toe vir hulle: “Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, seuns en dogters is, en bring dit vir my.” Die hele volk het toe die goue ringe wat aan hulle ore was, afgeruk, en dit vir Aäron gebring. Hy het dit uit hulle hand aanvaar. Toe het hy dit met 'n stilus vorm gegee en 'n gegote kalf daarvan gemaak. Hulle sê toe: “Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Toe Aäron sien wat gebeur, het hy 'n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: “Môre is daar 'n fees vir die Here! ” Hulle het vroeg die volgende dag opgestaan, •brandoffers geoffer en •maaltydoffers nadergebring. Die volk het gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulleself te vermaak. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het hulle wangedra. Hulle het gou weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak; hulle het voor die kalf in aanbidding gebuig en offers daarvoor gebring. Hulle het gesê, ‘Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.’ ” Die Here het ook vir Moses gesê: “Ek het hierdie volk deurgekyk – hulle is inderdaad 'n hardnekkige volk. Laat My dan nou met rus, sodat my toorn teen hulle kan ontbrand en Ek hulle kan vernietig. Ek sal jou dan 'n groot nasie maak.” Moses het egter die Here sy God goedgesind probeer stem en gesê: “Waarom, Here, moet u toorn brand teen u volk vir wie U uit Egipteland gelei het met groot krag en 'n sterk hand? Waarom sou die Egiptenare sê, ‘Met 'n bose plan het Hy hulle uitgelei, om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af uit te delg’? Laat vaar u brandende toorn en kry tog spyt oor die onheil teen u volk! Dink aan Abraham, Isak en Israel, u diensknegte vir wie U by Uself gesweer en vir hulle gesê het, ‘Ek sal julle nageslag so baie laat word soos die sterre aan die hemelruim; en hierdie hele land wat Ek gesê het Ek vir julle nageslag sal gee, sal hulle vir altyd as erfdeel ontvang.’ ” Die Here het toe spyt gekry oor die onheil wat Hy gesê het Hy sy volk sou aandoen. Moses het omgedraai en van die berg afgegaan met die twee tafels met die Getuienis in sy hand, tafels waarop aan al twee kante geskryf was; op die voorkant en op die agterkant was daar geskryf. Die tafels, dit was God se werk, en die skrif, dit was God se skrif, gegraveer op die tafels. Josua het die geluide van die volk gehoor toe hulle skreeu. Hy sê toe vir Moses: “Daar kom oorlogsgeluide uit die kamp.” Maar hy het geantwoord: “Dit is nie die klank van liedere ná 'n oorwinning nie, ook nie die klank van liedere ná 'n nederlaag nie; die klank van sang, dit is wat ek hoor.” Toe hy naby die kamp kom en die kalf en die kringdanse sien, het Moses kwaad geword. Hy het die kliptafels wat in sy hande was, neergesmyt en dit aan die voet van die berg verpletter. Hy het die kalf wat hulle gemaak het, gevat, dit verbrand en dit fyngestamp, totdat dit soos poeier was. Toe het hy dit op die water uitgestrooi en die Israeliete dit laat drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het?” Aäron het geantwoord: “Die toorn van my heer moet tog nie ontbrand nie. U ken self die volk, dat hulle tot kwaad geneig is. Hulle het vir my gesê, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê, ‘Wie goud het, ruk dit af!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi; en toe kom hierdie kalf daar uit.” Moses het gesien dat die volk losbandig is, want Aäron het hulle losbandig laat word, sodat hulle 'n bespotting by hulle teenstanders geword het. Moses het toe by die ingang na die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het by hom byeengekom. Hy sê toe vir hulle: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Maak elkeen van julle sy swaard aan sy heup vas! Beweeg heen en weer deur die kamp, van ingang tot ingang, en bring elkeen van julle sy broer en sy vriend en sy bloedverwant om die lewe!’ ” Die Leviete het toe gemaak soos Moses gesê het, en daar het daardie dag ongeveer drieduisend man van die volk geval. Moses het gesê: “Julle het julle vandag aan die Here gewy, omdat elkeen van julle teen sy seun en sy broer was. Dit bring vandag 'n seën oor julle.” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n groot sonde gedoen. Daarom moet ek nou na die Here opklim; miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.” Moses het toe na die Here teruggekeer en gesê: “Ag, hierdie volk het 'n groot sonde gedoen. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. As U nou maar hulle sondes sal vergewe! Maar as U nie wil nie, wis my dan maar uit u •boekrol wat U geskryf het, uit.” Die Here het egter vir Moses gesê: “Wie ook al teen My gesondig het, hom sal Ek uit my boekrol uitwis. Gaan dan nou, lei die volk na die plek waaroor Ek met jou gepraat het. Kyk, my engel gaan voor jou uit. Maar die dag wanneer Ek rekenskap eis, sal Ek hulle tot verantwoording roep oor hulle sonde.” Die Here het die volk met 'n plaag getref oor die kalf wat hulle gemaak het, die kalf wat Aäron gemaak het. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob, deur te sê, ‘Aan jou nageslag sal Ek dit gee.’ Ek sal 'n engel voor jou uit stuur, en Ek sal die Kanaäniete, die •Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete verdryf. Trek op, Israel, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek sal egter nie in jou midde optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is, anders vernietig Ek jou op pad.” Toe die volk hierdie woord van onheil hoor, het hulle getreur. Niemand het sy juwele aangesit nie. Die Here het immers vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, julle is 'n hardnekkige volk. As Ek vir een oomblik saam met jou sou optrek, sal Ek jou vernietig. Haal dan nou jou juwele af, sodat Ek kan weet wat Ek met jou moet doen.” Vanaf die berg Horeb het die Israeliete toe hulle juwele afgehaal. Moses het telkens 'n tent geneem en dit buite die kamp opgeslaan, ver van die kamp af. Hy het dit 'n ontmoetingstent genoem. Elkeen wat die Here wou raadpleeg, moes uitgaan na die ontmoetingstent wat buite die kamp was. Telkens wanneer Moses uitgegaan het na die tent, het die hele volk opgestaan, en dan het elkeen sy plek ingeneem by die ingang van sy tent. Hulle het Moses agternagekyk totdat hy by die tent ingegaan het. Telkens wanneer Moses die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Dan het die Here met Moses gepraat. Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent sien staan, het die hele volk opgestaan en elkeen by die ingang van sy tent in aanbidding gebuig. Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos 'n man met sy vriend praat. Dan het Moses teruggekeer na die kamp, maar sy helper, Josua, seun van Nun, 'n jong man, het nie die tent verlaat nie. Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is. ” Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee? ” Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie? ” Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken. ” Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die Here’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Hy het verder gesê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” Toe sê die Here: “Hier is 'n plek by My waar jy kan gereedstaan op die rots. Wanneer my heerlikheid dan verbygaan, sal Ek jou in die rotsskeur sit en Ek sal jou met die palm van my hand toehou, totdat Ek verby is. Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien. Maar my gesig mag nie gesien word nie. ” Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.” Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die Here hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem. Die Here het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die Here” uitgeroep. Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ” Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig. Toe sê hy: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek. Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.” Die Here het gesê: “Kyk, Ek gaan 'n verbond sluit. Voor jou hele volk sal Ek wonders doen wat op die hele aarde of onder al die nasies nog nie deur My verrig is nie. Dan sal die hele volk tussen wie jy is, die werk van die Here sien. Want ontsagwekkend is dit wat Ek met jou gaan doen. Kom dit na wat Ek jou vandag beveel, kyk, Ek gaan die •Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor jou uit verdryf. “ Wees op jou hoede dat jy nie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen jy op pad is nie, anders word dit 'n valstrik in jou midde. Hulle altare moet julle egter afbreek, hulle gedenkstene moet julle stukkend slaan, hulle asjeras moet julle afkap, want jy mag nie voor 'n ander god in aanbidding buig nie, omdat die Here wie se Naam “Besitlik” is, 'n besitlike God is. Wees op jou hoede dat jy nie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land nie. Wanneer hulle agter hulle gode aan hoereer en vir hulle gode offer, sal jy genooi word, en jy sal van hulle offers eet; en jy sal van hulle dogters vir jou seuns neem, en hulle dogters sal agter hulle gode aan hoereer en veroorsaak dat jou seuns ook agter hulle gode aan hoereer. Gegote beelde mag jy nie vir jou maak nie. Die Fees van die Ongesuurde Brood moet jy onderhou. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, soos Ek jou beveel het. Doen dit op die vasgestelde tyd in die maand Abib, want in die maand Abib het jy uit Egipte weggetrek. Elke eersteling van die moederskoot behoort aan My – dit is al jou manlike vee, die eerstelinge van beeste en kleinvee. Die eersteling van 'n donkie moet jy loskoop met 'n lam, en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop. Niemand mag met leë hande voor My verskyn nie. Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus; selfs in die ploegtyd en oestyd moet jy rus. Die Fees van die Weke moet jy vier met die eerste opbrengs van die koringoes; en die Fees van die Insameling teen die wending van die jaar. Drie keer per jaar moet al die manlike persone wat by jou is voor die Heer, die Here, die God van Israel, verskyn. Omdat Ek nasies voor jou uit sal verdryf en jou grondgebied sal vergroot, sal niemand jou land begeer wanneer jy drie keer per jaar opgaan om voor die Here jou God te verskyn nie. Jy mag nie so slag dat die bloed van my offer naby suurdeeg is nie; en die offer by die fees van die Pasga mag nie tot die oggend oorstaan nie. Die keur van die eerste vrugte van jou grond moet jy na die huis van die Here jou God bring. Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.” Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf jy hierdie woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel 'n verbond gesluit.” Hy was daar by die Here veertig dae en veertig nagte lank. Brood het hy nie geëet nie en water het hy nie gedrink nie. Hy het op die kliptafels die woorde van die verbond, die Tien Gebooie, geskryf. Toe Moses van die berg Sinai afkom – die twee kliptafels met die Getuienis was in Moses se hand toe hy van die berg afkom – het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig stralend was omdat hy met God gepraat het nie. Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, was die vel van sy gesig stralend! Hulle was toe te bang om naby hom te kom. Maar Moses het na hulle geroep, en Aäron en al die leiers in die volksvergadering het teruggedraai na hom, en toe het Moses met hulle gepraat. Daarna het al die Israeliete ook nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het. Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy 'n sluier oor sy gesig getrek. Maar wanneer Moses in die Here se teenwoordigheid kom om met Hom te praat, verwyder hy die sluier totdat hy weer uitkom. As hy dan uitkom en vir die Israeliete sê watter opdragte hy ontvang het, en die Israeliete Moses se gesig sien, dat die vel van sy gesig stralend is, trek hy weer die sluier oor sy gesig totdat hy ingaan om met die Here te praat. Moses het die hele volksvergadering van die Israeliete byeen laat kom en vir hulle gesê: “Dit is die sake wat die Here julle beveel het om te doen. Ses dae lank kan werk gedoen word, maar die sewende dag moet vir julle heilig wees, 'n buitengewone Sabbat, tot eer van die Here. Elkeen wat werk doen op dié dag, moet doodgemaak word. Julle mag nie op die Sabbatdag 'n vuur aansteek in enige van julle woonplekke nie.” Moses het vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Dit is die opdrag wat die Here gegee het, ‘Neem van wat julle het 'n •wydingsgeskenk vir die Here. Elkeen wie se hart gewillig is, moet dit bring – 'n wydingsgeskenk vir die Here: goud, silwer en brons; pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar; rooi gekleurde ramsvelle, sagte leer en doringhout; olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die geurige reukwerk; •oniksstene en edelstene as monterings vir die efod en die borstas. Laat elkeen onder julle wat vaardig is, kom en alles maak wat die Here beveel het: die •tabernakel, die tent, die bedekking, die hakies, die planke, die dwarshoute, die staanders en die voetstukke daarvan; die ark en sy draaghoute, die versoendeksel, die voorhangsel wat dien as gordyn; die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore, en die vertoonbrode; die menora vir lig, met sy toebehore en sy lampe, en die olie vir die lig; die altaar vir die reukwerk, en sy draaghoute, die salfolie en die geurige reukwerk, en die toegangsgordyn by die ingang van die tabernakel; die brandofferaltaar met sy traliewerk van brons, die draaghoute en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk; die behangsels vir die binneplein, die staanders en die voetstukke, en die gordyn vir die ingang van die binneplein; die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die binneplein met hulle toue; die geweefde klere om in die heiligdom dienswerk te doen, dit is die heilige klere vir Aäron, die priester, en die klere vir sy seuns vir die priesterdiens.’ ” Die hele volksvergadering van die Israeliete het van Moses af weggegaan. Elkeen wie se hart hom daartoe gebring het, en elkeen wie se gees hom daartoe aangespoor het, het gekom, en hulle het vir die Here 'n wydingsgeskenk gebring vir die werk aan die Tent van Ontmoeting en vir al die dienswerk daaraan verbonde, en vir die heilige klere. Hulle het gekom, die mans sowel as die vroue, almal wie se harte daartoe bereid was. Hulle het borsspelde, oorbelle, ringe en halskettings, allerlei goue voorwerpe, gebring – elkeen wat 'n gewyde gawe van goud vir die Here wou aanbied. Elkeen wat in besit was van pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar, rooi gekleurde ramsvelle en sagte leer, het dit gebring. Elkeen wat 'n wydingsgeskenk van silwer en brons wou aanbied, het 'n wydingsgeskenk vir die Here gebring; en elkeen wat in besit was van doringhout wat vir enige werk gebruik kon word, het dit gebring. Elke vrou wat vaardig was, het met haar twee hande spinwerk gedoen en het pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad gebring. Al die vroue wie se harte hulle daartoe beweeg het en wat oor die nodige vaardigheid beskik het, het die bokhaar gespin. Die leiers het oniksstene en ander edelstene vir die monterings op die efod en die borstas gebring, en speserye en olie vir die lig, die salfolie en die geurige reukwerk. So het die Israeliete dit as 'n vrywillige offer vir die Here gebring, elke man en vrou wie se harte hulle daartoe aangespoor het om iets te bring vir al die werk wat die Here by monde van Moses beveel het. Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die Here het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam aangewys. Hy het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, met insig en met kennis en al die nodige vakmanskap – om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons; en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout – om dit vindingryk te doen met al die nodige vakmanskap. En die Here het dit ook in sy hart gegee om te onderrig. Hy en Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan – die Here het hulle vervul met die kundigheid om al die werk van 'n vakman te doen: dié van 'n ontwerper, 'n borduurder met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad, en dié van 'n wewer – mense wat al die werk kan doen en vindingryke planne kan beraam. “Besaleël, Oholiab en elke vaardige persoon vir wie die Here wysheid gegee het, en ook die insig om te verstaan hoe om al die werk aan die oprigting van die heiligdom te verrig, moet dit doen in ooreenstemming met alles wat die Here beveel het.” Moses het Besaleël en Oholiab toe ontbied, en ook elke vaardige persoon in wie se hart die Here wysheid gegee het, elkeen wie se hart hom daartoe gebring het om aan te meld vir die uitvoering van die taak. Om dit te kon doen, het hulle elke •wydingsgeskenk wat die Israeliete gebring het vir die werk aan die oprigting van die heiligdom, van Moses ontvang. Die Israeliete het steeds elke oggend vrywillige offers vir hom gebring. Al dié wat vaardig is en wat besig was met die werk aan die heiligdom, elkeen wat met 'n eie taak belas was, het gekom en vir Moses kom sê: “Die volk bring nou meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk wat die Here hulle beveel het om te doen.” Moses het toe opdrag gegee en hulle het 'n boodskap deur die hele kamp gestuur: “Geen man of vrou moet verder werk aan wydingsgeskenke vir die heiligdom nie.” Die volk het toe opgehou om te bring, en die bydrae wat hulle gemaak het, was genoeg om al die werk te doen – daar het selfs oorgebly. Al die vaardiges onder dié wat die werk gedoen het, het die •tabernakel met tien tentdoeke van fyn dubbeldraadlinne en pers, purperrooi en karmosynrooi wol gemaak, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. Die lengte van elke tentdoek was agt-en-twintig el en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke het dieselfde afmetings gehad. Hy het vyf van die tentdoeke aan mekaar vasgewerk, en so ook die ander vyf tentdoeke. Hy het op die een stel, op die soom van die een tentdoek, al langs die kant, lussies van pers wol aangebring. Op dieselfde manier het hy ook op die tweede stel, op die soom van die buitenste tentdoek, lussies aangebring. Hy het vyftig lussies op die een tentdoek aangebring, en vyftig lussies op die kant van die tentdoek van die tweede stel. Die lussies was regoor mekaar. Hy het vyftig goue hakies gemaak, en die tentdoeke met die hakies aan mekaar vasgemaak, sodat die tabernakel een geheel gevorm het. Hy het ook tentdoeke van bokhaar gemaak om te dien as 'n tent oor die tabernakel. Elf van hierdie tentdoeke het hy daarvoor gemaak. Elke tentdoek was dertig el lank en vier el breed. Die elf tentdoeke het dieselfde afmetings gehad. Hy het vyf tentdoeke aan mekaar vasgewerk om 'n eenheid te vorm, en so ook die ander ses tentdoeke. Hy het vyftig lussies op die soom van die buitenste tentdoek in die een stel aangebring, en vyftig lussies op die soom van die tweede stel tentdoeke. Hy het vyftig bronshakies gemaak om die dele van die tent saam te heg, sodat dit een geheel vorm. Hy het vir die tent 'n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle gemaak, en nog 'n bedekking van sagte leer bo-oor. Hy het vir die tabernakel planke van doringhout gemaak wat regop staan. Elke plank was tien el lank, en een en 'n half el breed. Daar was twee tappe in elke plank waarmee hulle teen mekaar geplaas is. So het hy met al die planke van die tabernakel gemaak. Hy het vir die suidekant van die tabernakel twintig planke gemaak, en hy het veertig silwervoetstukke onder die twintig planke aangebring – twee voetstukke onder een plank vir sy twee tappe, en twee voetstukke onder die ander plank vir sy twee tappe. Vir die ander sykant, aan die noordekant van die tabernakel, het hy twintig planke gemaak met hulle veertig silwervoetstukke – twee voetstukke onder elk van die planke. Vir die agterkant van die tabernakel, aan die westekant, het hy ses planke gemaak. Hy het twee planke vir elk van die twee agterste hoeke van die tabernakel gemaak. Hulle het van onder af teen mekaar gepas, en 'n hegte eenheid gevorm tot bo by die een ring. So het hy met al twee planke by die twee agterste hoeke gemaak. Daar was agt sulke hoekplanke met hulle silwervoetstukke, dit is sestien voetstukke – twee voetstukke onder elk van die hoekplanke. Hy het ook dwarshoute van doringhout gemaak, vyf rye vir die planke aan die een sykant van die tabernakel, en vyf rye dwarshoute vir die planke aan die ander sykant van die tabernakel, asook vyf rye dwarshoute vir die planke aan die agterkant van die tabernakel, aan die westekant. Hy het die middelste ry dwarshoute gemaak om in die middel van die planke deur te loop – van die een kant na die ander kant. Die planke het hy met goud oorgetrek, en die ringe van die planke, wat die dwarshoute dra, het hy van goud gemaak. Hy het die dwarshoute ook met goud oorgetrek. Hy het die voorhangsel met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. Hy het vier staanders van doringhout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle hakies was van goud en hy het vir hulle vier silwervoetstukke gegiet. Hy het ook vir die ingang van die tent 'n gordyn, met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak – met die kundigheid van 'n borduurder – asook die bypassende vyf staanders met hulle hakies. Hy het die bopunte van die staanders met goud oorgetrek. Hulle hegplekke was van goud en hulle vyf voetstukke was van brons. Besaleël het die ark van doringhout gemaak, twee en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een en 'n half el hoog. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek, aan die binnekant en aan die buitekant, en hy het reg rondom 'n goue rand aangebring. Hy het vir die ark vier goue ringe aan die vier pote gegiet, twee ringe aan die een kant en twee aan die ander kant. Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. Hy het die draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark gesteek om die ark daarmee te dra. Hy het 'n versoendeksel van suiwer goud gemaak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. Hy het twee gerubs van goud gemaak; met pletwerk het hy hulle gemaak, op die twee punte van die versoendeksel, een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel het hy die gerubs op die twee punte gemaak. Die gerubs is so gemaak dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel met hulle vlerke beskut het. Met hulle gesigte na mekaar, het die gerubs na die versoendeksel gekyk. Hy het ook die tafel van doringhout gemaak, twee el lank, een el breed en een en 'n half el hoog. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en reg rondom 'n goue rand aangebring. Hy het 'n strook van een handbreedte reg rondom gemaak en 'n goue randversiering reg rondom op die strook aangebring. Hy het vier goue ringe daarvoor gegiet en die ringe toe aan die vier hoeke van die vier pote vasgesit. Die ringe was naby die strook, as houers vir die draaghoute om die tafel mee te dra. Hy het die draaghoute om die tafel mee te dra, van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. Hy het die toebehore wat op die tafel moet wees, gemaak: die skottels, bakke, komme en bekers waarmee •drankoffers uitgegiet word. Dit was van suiwer goud. Hy het die menora van suiwer goud gemaak. Met pletwerk het hy die menora – dit is sy voetstuk en sy staander – gemaak. Die kelke, blomknoppe en blomme was deel daarvan. Ses arms het uit die kante vertak – drie arms van die menora uit die een kant en drie arms van die menora uit die ander kant. Daar was drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op een arm, en drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op elke volgende arm. So was daar kelke aan die ses arms wat uit die menora vertak. Op die menora self was daar vier kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met hulle blomknoppe en blomme. Vir die ses arms wat uit die staander vertak, was daar 'n blomknop onder aan die eerste twee arms, 'n blomknop onder aan die tweede twee arms, en 'n blomknop onder aan die derde twee arms. Die blomknoppe en arms was 'n deel van die staander, in sy geheel geplet uit suiwer goud. Hy het sewe lampe daarvoor gemaak. Die snuiters en bakkies daarvan was van suiwer goud. Van 'n kikkar suiwer goud het hy dit, en ook al die toebehore daarvan, gemaak. Hy het die altaar vir die reukwerk van doringhout gemaak. Dit was 'n el lank en 'n el breed. Dit was vierkantig, en twee el hoog. Die horings was deel daarvan. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek – die bokant, die kante reg rondom, en die horings. Hy het reg rondom 'n goue rand daarvoor gemaak. Twee goue ringe het hy daarvoor gemaak, onder die rand, weerskante aan die twee sykante, as houers vir die draaghoute, om dit daarmee te dra. Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. Hy het ook die heilige salfolie en die suiwer geurige reukwerk gemaak – met die kundigheid van 'n salfmenger. Hy het die brandofferaltaar van doringhout gemaak, vyf el lank en vyf el breed; dit was vierkantig, en drie el hoog. Hy het die horings daarvan op die vier hoeke gemaak. Die horings was deel daarvan, en hy het die altaar met brons oorgetrek. Hy het al die toebehore van die altaar gemaak, die houers, skoppies, offerbakke, vurke en vuurpanne. Al die toebehore het hy van brons gemaak. Hy het vir die altaar 'n traliewerk gemaak, 'n maaswerk van brons, onder die rand, met die onderkant daarvan tot by die helfte van die altaar. Hy het vier ringe aan die vier hoeke van die bronstraliewerk gegiet as houers vir die draaghoute. Hy het die draaghoute van doringhout gemaak en dit met brons oorgetrek. Hy het die draaghoute deur die ringe aan die kante van die altaar gesteek om dit daarmee te dra. Hy het die altaar van planke gemaak, hol aan die binnekant. Hy het die bronswaskom en sy bronsvoetstuk gemaak van die spieëls van die vroue wat aan diens was by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Hy het ook die binneplein gemaak. Aan die suidekant was die behangsels vir die binneplein van fyn dubbeldraadlinne, 'n honderd el lank. Daar was twintig staanders met hulle twintig bronsvoetstukke, maar die hakies van die staanders en hulle hegplekke was van silwer. Aan die noordekant, oor 'n lengte van honderd el, was daar twintig staanders met hulle bronsvoetstukke, en die hakies en die hegplekke van die staanders was van silwer. Aan die westekant was daar vyftig el behangsels, tien staanders met hulle tien voetstukke en die hakies van die staanders, en hulle hegplekke was van silwer. Aan die oostekant was dit vyftig el wyd. Die behangsels langs die ingang was vyftien el, met drie staanders en hulle drie voetstukke – so ook langs die ander kant. So was daar aan elke kant van die ingang na die binneplein behangsels van vyftien el, met drie staanders en drie voetstukke. Al die behangsels rondom die binneplein was van fyn dubbeldraadlinne. Die voetstukke van die staanders was van brons, die hakies en hegplekke van die staanders was van silwer, die plaatwerk aan die bopunte was van silwer. Die staanders is van silwerhegplekke voorsien, al die staanders van die binneplein. Die gordyn by die ingang van die binneplein is van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak – met die kundigheid van 'n borduurder. Dit was twintig el lank en die hoogte oor die volle breedte was vyf el, in ooreenstemming met die behangsels van die binneplein. Die vier staanders en vier voetstukke was van brons. Hulle hakies was van silwer, en die plaatwerk aan die bopunte en hulle hegplekke was van silwer. Al die tentpenne rondom die •tabernakel en die binneplein was van brons. Dít is die inventaris van die tabernakel – die tabernakel met die Getuienis – wat in opdrag van Moses opgestel is deur die Leviete onder leiding van Itamar, seun van Aäron, die priester. Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die Here Moses beveel het. Saam met hom was Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan, 'n vakman en ontwerper, 'n borduurder van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad. Al die goud wat vir die werk gebruik is by al die werk aan die heiligdom – dit was die goud van die •gewyde gawes – was 29 kikkar en 730 sikkel, volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die silwer van die geteldes van die volksvergadering was 100 kikkar en 1 775 sikkel, volgens die standaardgewig van die heiligdom. Dit was 'n beka per kop, 'n halfsikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, vir elkeen vanaf twintig jaar en ouer wat getel is, altesaam 603 550 man. Die 100 kikkar silwer was vir die giet van die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel – 100 voetstukke van die 100 kikkar, 'n kikkar per voetstuk. Van die 1 775 sikkel het hy hakies vir die staanders gemaak, hulle bopunte bedek en van hegplekke voorsien. Die brons van die gewyde gawes was 70 kikkar en 2 400 sikkel. Hy het daarmee die voetstukke vir die ingang van die Tent van Ontmoeting gemaak, die bronsaltaar met sy bronstraliewerk en al die toebehore van die altaar, die voetstukke rondom die binneplein en die voetstukke by die ingang van die binneplein, asook al die tentpenne van die tabernakel en al die tentpenne rondom die binneplein. Van die pers, purperrooi en karmosynrooi wol het hulle die geweefde klere gemaak vir dienswerk in die heiligdom. Hulle het die heilige klere vir Aäron gemaak, soos die Here Moses beveel het. Hy het die efod gemaak van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne. Hulle het die goud in dun plate uitgeklop en daarvan draadjies gesny om dit in die pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linne in te werk – met die kundigheid van 'n vakman. Hulle het vir die efod skouerbande gemaak wat daaraan vasgeheg is, en by die twee hoeke vasgewerk is, en ook sy versierde gordel wat daaroor kom, wat 'n deel daarvan is en op dieselfde manier as die efod gemaak is van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne, soos die Here Moses beveel het. Hulle het die •oniksstene vasgesit, omring met monterings van gouddraad, en gegraveer met die gravering van 'n seëlring daarop, ooreenkomstig die name van die seuns van Israel. Hy het dit op die skouerbande van die efod vasgesit as stene ter herinnering aan die seuns van Israel, soos die Here Moses beveel het. Hy het die borstas met gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne op dieselfde manier as die efod gemaak – met die kundigheid van 'n vakman. Vierkantig gevou het hulle die borstas gemaak. Dit was 'n span lank en 'n span breed gevou. Hulle het daarop vier rye edelstene gemonteer: 'n •karneool, 'n •topaas en 'n •smarag in die eerste ry; in die tweede ry 'n •malagiet, 'n •lasuursteen en 'n •akwamaryn; in die derde ry 'n •hiasint, 'n •agaat en 'n •ametis; en in die vierde ry 'n •chrisoliet, 'n •oniks en 'n •jaspis – omring met monterings van gouddraad toe dit vasgesit is. Die stene was gerangskik volgens die name van die seuns van Israel – twaalf, in ooreenstemming met hulle name. Met gravering soos op 'n seëlring het elke steen sy naam gekry, in ooreenstemming met die twaalf stamme. Hulle het aan die borstas kettinkies gesit van suiwer goud, gevleg op dieselfde wyse as touwerk. Hulle het twee goue monterings en twee goue ringe gemaak, en die twee goue ringe aan die twee hoeke van die borstas vasgeheg. Hulle het die twee goue koorde aan die twee ringe op die hoeke van die borstas vasgeheg, en die twee ander punte van die twee goue koorde het hulle aan die twee monterings vasgeheg. Hulle het dié dan aan die skouerbande van die efod, aan die voorkant, vasgeheg. Hulle het twee goue ringe gemaak en dit aan die twee ander hoeke van die borstas, aan die binnerand, teen die efod vasgeheg. Hulle het nog twee goue ringe gemaak en dit aan die onderkant van die twee skouerbande van die efod vasgeheg, aan die voorkant, naby die hegpunte van die skouerbande bo die band van die efod. Hulle het die borstas met sy ringe aan die efod se ringe met 'n draad pers wol vasgemaak, sodat dit aan die band van die efod kon bly en die borstas nie van die efod sou wegskuif nie, soos die Here Moses beveel het. Hy het die mantel van die efod geheel en al van pers wol gemaak – met die kundigheid van 'n wewer. Die opening van die mantel was in die middel daarvan, soos die opening in 'n gevegsmondering. Die opening het 'n soom rondom gehad, sodat dit nie kon skeur nie. Hulle het op die soomnate van die mantel granate geborduur met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en dubbeldraadlinnevesel. Hulle het klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granate op die soomnate van die mantel vasgeheg, reg rondom tussen die granate: 'n klokkie en 'n granaat, 'n klokkie en 'n granaat; reg rondom op die soomnate van die mantel – met die oog op die dienswerk, soos die Here Moses beveel het. Hulle het die priesterrokke van fyn linne gemaak vir Aäron en sy seuns – met die kundigheid van 'n wewer. Hulle het die tulband van fyn linne, die versierde kopdoeke van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraadlinne gemaak, ook die lyfserpe van fyn dubbeldraadlinne, met pers, purperrooi en karmosynrooi wol – met die kundigheid van 'n borduurder – soos die Here Moses beveel het. Hulle het die roset, die heilige wydingsteken, van suiwer goud gemaak en daarop gegraveer soos wanneer 'n seëlring gegraveer word, “Heilig vir die Here. ” Hulle het 'n draad pers wol daaraan vasgebind om dit aan die tulband, aan die bokant, vas te maak, soos die Here Moses beveel het. So is al die werk aan die •tabernakel, die Tent van Ontmoeting, afgehandel. Die Israeliete het dit gemaak; net soos die Here Moses beveel het, so het hulle dit gemaak. Hulle het toe die tabernakel na Moses geneem, die tent met al sy toebehore, sy hakies, sy planke, sy dwarshoute, sy staanders en sy voetstukke; die bedekking van rooi gekleurde ramsvelle en die bedekking van sagte leer; die voorhangsel wat dien as gordyn, die ark met die Getuienis, sy draaghoute en die versoendeksel; die tafel met al sy toebehore en die vertoonbrode; die menora van suiwer goud met sy lampe, die hele ry, al sy toebehore en die olie vir die kandelaar; die goue altaar, die salfolie, die geurige reukwerk en die gordyn vir die ingang van die tent; die bronsaltaar met sy traliewerk van brons, sy draaghoute en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk; die behangsels van die binneplein, die staanders en die voetstukke, die gordyn vir die ingang van die binneplein, die toue en tentpenne daarvan; al die toebehore vir die diens in die tabernakel, die Tent van Ontmoeting; verder ook die geweefde klere om in die heiligdom dienswerk te doen, dit is die heilige klere van Aäron, die priester, en die klere van sy seuns vir die priesterdiens. Net soos die Here Moses beveel het, so het die Israeliete al die werk gedoen. Moses het al die werk nagegaan – en inderdaad, hulle het dit gedoen! Soos die Here opdrag gegee het, so het hulle dit gedoen. Toe het Moses hulle geseën. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Op die eerste dag van die eerste maand moet jy die •tabernakel, die Tent van Ontmoeting, oprig. Jy moet die ark met die Getuienis daarin plaas en die ark met die voorhangsel afskerm. Dan moet jy die tafel inbring en dit wat daarop hoort, daarop rangskik. Jy moet die menora inbring en sy lampe aansteek. Jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark met die Getuienis neersit en dan die gordyn plaas by die ingang van die tabernakel. Jy moet die brandofferaltaar neersit voor die ingang van die tabernakel, die •Tent van Ontmoeting. Plaas dan die waskom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar en gooi water daarin. “Jy moet die binneplein rondom afskerm en die gordyn by die ingang van die binneplein hang. Dan moet jy die salfolie neem en die tabernakel met alles wat daarin is, salf. Jy moet dit met al sy toebehore heilig, dan sal dit heilig wees. Jy moet ook die brandofferaltaar met al sy toebehore salf. Jy moet die altaar heilig, dan sal dit besonder heilig wees. Jy moet die waskom en sy voetstuk salf en dit heilig. “Dan moet jy Aäron en sy seuns naderbring na die ingang van die •Tent van Ontmoeting, en hulle met water afspoel. Trek dan vir Aäron die heilige klere aan, salf hom en heilig hom, sodat hy vir My as priester kan optree. Sy seuns moet jy naderbring en die priesterrokke vir hulle aantrek. Dan moet jy hulle salf soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My as priesters kan optree. Hulle salwing moet vir hulle as 'n ewige priesterskap geld deur hulle geslagte heen.” Moses het dit toe gedoen – alles wat die Here hom beveel het, het hy net so gedoen. In die tweede jaar, op die eerste dag van die eerste maand, is die tabernakel opgerig. Toe Moses die tabernakel opgerig het, het hy die voetstukke neergesit en die planke vasgesit. Hy het die dwarshoute aangesit en die staanders opgerig. Hy het die tent oor die tabernakel gespan en die tent se bedekking daaroor getrek, soos die Here Moses beveel het. Toe het hy die Getuienis geneem en dit in die ark geplaas. Hy het die draaghoute langs die ark ingesteek en die versoendeksel bo-op die ark neergesit. Toe het hy die ark in die tabernakel ingeneem, die voorhangsel wat dien as gordyn, opgerig, en die ark met die Getuienis afgeskerm, soos die Here Moses beveel het. Hy het die tafel in die Tent van Ontmoeting neergesit, in die tabernakel, aan die noordekant, buite die voorhangsel. Toe het hy die brood daarop gerangskik voor die Here soos die Here Moses beveel het. Hy het die menora in die Tent van Ontmoeting geplaas, in die tabernakel, aan die suidekant, teenoor die tafel. Moses het die lampe voor die Here opgesteek, soos die Here Moses beveel het. Hy het die goue altaar in die Tent van Ontmoeting neergesit voor die voorhangsel, en die geurige reukwerk daarop aan die brand gesteek, soos die Here Moses beveel het. Toe het hy die gordyn by die ingang van die tabernakel geplaas. Die brandofferaltaar het hy by die ingang van die tabernakel, die Tent van Ontmoeting, geplaas, en die brandoffer en •graanoffer daarop gebring, soos die Here Moses beveel het. Toe het hy die waskom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar neergesit, en water om mee af te spoel, daarin gegooi. Moses en Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daaruit afgespoel. Wanneer hulle in die Tent van Ontmoeting ingegaan het en wanneer hulle die altaar genader het, het hulle hulle afgespoel, soos die Here Moses beveel het. Toe het Moses die binneplein rondom die tabernakel en die altaar afgeskerm, en die gordyn by die ingang na die binneplein gehang. So het Moses die werk afgehandel. Die wolk het die Tent van Ontmoeting bedek en die heerlikheid van die Here het die tabernakel gevul. Moses kon nie in die Tent van Ontmoeting ingaan nie, omdat die wolk daaroor vertoef het en die heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het. Wanneer die wolk van die tabernakel af opgeneem is, het die Israeliete, op al hulle trekskofte, kamp opgebreek. Maar as die wolk nie opgeneem is nie, het die volk nie kamp opgebreek nie, tot die dag dat dit weer opgeneem is. Want die wolk van die Here was bedags oor die tabernakel en snags was daar vuur in, sigbaar vir die hele huis van Israel, op al hulle trekskofte. Die Here het Moses geroep en uit die Tent van Ontmoeting met hom gepraat. Hy het vir hom gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil bring, moet julle van julle vee as 'n offer aanbied, van die beeste of van die kleinvee. “ ‘As die persoon se offer 'n •brandoffer is uit die beeste, moet dit 'n bul sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet dit na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring en dit so aanbied dat hy voor die Here aanvaarbaar is. Hy moet sy hand op die kop van die brandofferdier lê sodat dit namens hom aanvaar kan word om oor hom versoening te doen. Daarna moet hy die jong bul voor die Here keelaf sny en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed naderbring en dit sprinkel reg rondom teen die altaar wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting staan. Die dier vir die brandoffer moet dan afgeslag en in stukke opgesny word. Die seuns van die priester Aäron moet vuur op die altaar plaas en hout daarop rangskik. Die seuns van Aäron, die priesters, moet dan die stukke en die kop en niervet rangskik bo-op die hout wat op die vuur op die altaar is. Die persoon wat offer moet die binnegoed en pote met water afspoel. Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is 'n brandoffer, 'n offergawe met 'n aangename geur vir die Here. “ ‘As sy offer 'n brandoffer is uit die kleinvee, uit die skape of bokke, moet dit 'n ram sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet dit aan die noordekant van die altaar voor die Here keelaf sny. Die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Die dier moet in stukke opgesny word, en die priester moet dit saam met die kop en die niervet rangskik bo-op die hout wat op die vuur op die altaar is. Die persoon wat offer moet die binnegoed en pote met water afspoel. Die priester moet dit alles naderbring en op die altaar verbrand. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. “ ‘As sy offer vir die Here 'n brandoffer is uit die voëls, moet dit 'n tortelduif of 'n jong duif wees. Die priester moet dit na die altaar bring. Hy moet die kop afknyp en op die altaar verbrand. Die bloed moet teen die sykant van die altaar uitgedruk word. Die persoon wat offer moet die krop en die derms verwyder en dit gooi op die plek waar die vetterige as gegooi word, aan die oostekant van die altaar. Hy moet die duif by die vlerke oopskeur sonder om dit in twee te verdeel. Dan moet die priester dit op die altaar verbrand, bo-op die hout wat op die vuur is. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. ’ ” “ ‘ Wanneer iemand vir die Here 'n •graanoffer bring, moet sy offer gesifte meel wees. Hy moet olyfolie daaroor gooi en wierook langsaan neersit. Hy moet dit dan na die seuns van Aäron, die priesters, bring, en 'n hand vol van die gesifte meel en olie met al die wierook neem en die priester moet hierdie simboliese offer op die altaar verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Wat oorbly van die graanoffer kom Aäron en sy seuns toe. Dit is 'n besonder heilige deel van die offergawes aan die Here. “ ‘ Wanneer jy 'n graanoffer bring wat in die oond gebak is, moet dit van gesifte meel wees; ongesuurde ringbrode wat met olyfolie gemeng is, of ongesuurde platbrode wat met olyfolie gesmeer is. As jou offer 'n graanoffer is wat van 'n bakplaat af kom, moet dit van gesifte meel wees, ongesuurd en met olyfolie gemeng. Breek dit in stukkies en gooi olyfolie daaroor, dan is dit 'n graanoffer. “ ‘As jou offer 'n graanoffer is wat uit 'n pan kom, moet dit met gesifte meel en olyfolie voorberei word. Jy moet die graanoffer wat op dié manier vir die Here voorberei is, bring. Dit moet na die priester geneem word en hy moet dit naderbring na die altaar. Die priester moet die simboliese offer van die graanoffer verwyder en dit op die altaar verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Wat oorbly van die graanoffer, kom Aäron en sy seuns toe. Dit is 'n besonder heilige deel van die offergawes aan die Here. “ ‘ Geen graanoffer wat julle vir die Here bring, mag met suurdeeg voorberei word nie. Ja, geen suurdeeg of heuning mag as offergawe aan die Here verbrand word nie. Julle mag dit as 'n offer van die eerstelinge vir die Here bring, maar op die altaar mag dit nie as 'n aangename geur geoffer word nie. Jy moet sout by al jou graanoffers byvoeg. Jy mag nie die sout van die verbond van jou God uit jou graanoffer weglaat nie. Daar moet sout wees by al jou offers wat jy bring. “ ‘ As jy vir die Here 'n graanoffer van die eerste opbrengs van die oes bring, moet dit ryp are wees, gebreekte graankorrels van die nuwe oes wat oor die vuur gerooster is. Jy moet dit bring as jou graanoffer van die eerste opbrengs. Jy moet olyfolie daaroor gooi en wierook daarop neersit, dan is dit 'n graanoffer. Die priester moet die simboliese offer van die gebreekte graankorrels en olie, en ook al die wierook verbrand. Dit is 'n offergawe aan die Here. ’ ” “ ‘ As iemand se offer 'n •maaltydoffer is wat uit die beeste kom, moet hy 'n bul of 'n koei sonder gebrek bring. Hy moet dit voor die Here bring en sy hand op die kop van sy offer lê. Dan moet hy dit keelaf sny by die ingang van die •Tent van Ontmoeting en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Van die maaltydoffer moet hy vir die Here 'n offergawe bring: die vet wat die binnegoed bedek en al die vet aan die binnegoed, sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. Die seuns van Aäron moet dit op die altaar verbrand bo-op die •brandoffer wat op die hout op die vuur op die altaar is. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. “ ‘ As sy offer 'n maaltydoffer is wat uit die kleinvee kom, dan moet dit 'n ram of 'n ooi sonder gebrek wees wat hy vir die Here bring. As dit 'n skaap is wat hy as sy offer bring, moet hy dit voor die Here bring en sy hand op die kop van sy offer lê. Hy moet dit keelaf sny voor die Tent van Ontmoeting. Die seuns van Aäron moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Hy moet die vet van die maaltydoffer as 'n offergawe aan die Here bring. Hy moet die hele vetstert tot teen die stuitjie verwyder, asook die vet wat die binnegoed bedek en al die vet wat aan die binnegoed is, sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is voedsel, 'n offergawe aan die Here. “ ‘ As sy offer 'n bok is, moet hy dit voor die Here bring en sy hand op die dier se kop lê. Hy moet dit voor die Tent van Ontmoeting keelaf sny en die seuns van Aäron moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 'n Deel van sy offer moet hy as offergawe aan die Here bring: die vet wat die binnegoed bedek en ook al die vet aan die binnegoed, sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is voedsel, 'n offergawe met 'n aangename geur. Al die vet behoort aan die Here. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon: Julle mag geen vet of bloed eet nie.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “ Sê vir die Israeliete, ‘Iemand sondig dalk onopsetlik teen een van al die Here se gebooie en doen iets wat nie gedoen mag word nie. As die gesalfde priester sondig, sodat die volk skuldig is, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, 'n jong bul sonder gebrek vir die Here as •reinigingsoffer bring. Hy moet die bul na die ingang van die •Tent van Ontmoeting voor die Here bring, sy hand op die kop van die bul lê en dit voor die Here keelaf sny. Dan moet die gesalfde priester van die bul se bloed neem en dit in die Tent van Ontmoeting invat. Die priester moet sy vinger in die bloed doop en van die bloed sewe maal voor die Here sprinkel aan die voorkant van die voorhangsel van die heiligdom. Die priester moet ook van die bloed smeer aan die horings van die altaar vir die geurige reukwerk wat in die Tent van Ontmoeting voor die Here staan. Die res van die bul se bloed moet hy uitgooi teen die basis van die brandofferaltaar wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting staan. Die een wat die offer bring, moet ál die vet uit die bul vir die reinigingsoffer uithaal: die vet wat die binnegoed bedek en al die vet aan die binnegoed, sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder, soos wat dit uit die bul vir die •maaltydoffer uitgehaal word. Daarna moet die priester dit alles op die brandofferaltaar verbrand. Maar die vel van die bul en al sy vleis, asook sy kop, pote, binnegoed en pensmis, ja, die hele bul moet hy uit die kamp uitvat na 'n rein plek, na die stortplek van die vetterige as en dit op 'n houtvuur verbrand. By die stortplek van die vetterige as moet dit verbrand word. “ ‘ As die hele volksvergadering van Israel onopsetlik iets verkeerds doen en die geloofsgemeenskap merk nie eers op dat hulle gedoen het wat een van die gebooie van die Here sê nié gedoen mag word nie, is hulle skuldig. As die oortreding wat hulle begaan het, bekend word, moet die geloofsgemeenskap 'n jong bul as reinigingsoffer bring. Hulle moet hom tot voor die Tent van Ontmoeting neem. Die oudstes van die volksvergadering moet voor die Here hulle hande op die kop van die bul lê. Hulle moet die bul voor die Here keelaf sny en die gesalfde priester moet van die bul se bloed na die Tent van Ontmoeting neem. Die priester moet sy vinger in die bloed doop en van die bloed sewe maal voor die Here sprinkel aan die voorkant van die voorhangsel. Hy moet ook van die bloed smeer aan die horings van die altaar wat in die Tent van Ontmoeting voor die Here staan. Die res van die bul se bloed moet hy uitgooi teen die basis van die brandofferaltaar wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting staan. Al die vet moet hy uit die bul uithaal en dit op die altaar verbrand. Hy moet met die bul maak soos hy met die bul van die reinigingsoffer gemaak het. So sal die priester oor hulle versoening doen en sal hulle vergewe word. Hy moet die bul uit die kamp neem en dit verbrand soos hy die eerste bul verbrand het. Dit is die geloofsgemeenskap se reinigingsoffer. “ ‘ Wanneer 'n leier gesondig het en onopsetlik gedoen het wat een van die gebooie van die Here sy God sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend gemaak word, moet hy as sy offer 'n bokram sonder gebrek bring. Hy moet sy hand op die kop van die bok lê en dit keelaf sny op die plek waar die •brandoffer voor die Here keelaf gesny word. Dit is 'n reinigingsoffer. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die brandofferaltaar uitgooi. Al die vet moet hy, soos die vet van die maaltydoffer, op die altaar verbrand. So sal die priester vir die leier versoening doen vir sy sonde en sal hy vergewe word. “ ‘ As iemand uit die volk van die land onopsetlik sondig deur te doen wat een van die gebooie van die Here sê nié gedoen mag word nie, is hy skuldig. As die sonde wat hy gedoen het aan hom bekend gemaak word, moet hy 'n bokooi sonder gebrek bring as offer vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moet sy hand op die kop van die reinigingsoffer lê en dit op dieselfde plek as die brandoffer keelaf sny. Die priester moet van die bloed neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die maaltydoffer verwyder. Die priester moet dit op die altaar verbrand as 'n geurige offer vir die Here. So sal die priester vir die persoon versoening doen en sal hy vergewe word. “ ‘As hy 'n skaap as sy reinigingsoffer bring, moet dit 'n ooi sonder gebrek wees wat hy bring. Hy moet sy hand op die reinigingsoffer se kop lê en dit as 'n reinigingsoffer keelaf sny op die plek waar die brandoffer keelaf gesny word. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit met sy vinger aan die horings van die brandofferaltaar smeer en al die oorblywende bloed teen die basis van die altaar uitgooi. Al die vet moet hy verwyder, soos hy die vet van die skaap vir die maaltydoffer verwyder het. Die priester moet dit op die altaar verbrand saam met die ander offergawes vir die Here. So sal die priester vir die persoon versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het en sal hy vergewe word. “ ‘ Wanneer iemand sondig omdat hy gehoor het 'n openbare vervloeking is uitgespreek teen getuies wat swyg oor 'n misdaad waaroor hy kan getuig omdat hy dit gesien het of daarvan weet, maar hy verswyg dit, en daarom skuld dra; of “ ‘wanneer iemand aan enigiets wat •onrein is, raak – of dit nou die karkas van 'n onrein wilde dier, of die karkas van 'n onrein mak dier, of die dooie liggaam van 'n onrein kruipende diertjie is – en hy, al is hy onbewus daarvan, daarom onrein en skuldig is; of “ ‘wanneer hy aan menslike onreinheid raak, enigiets onreins van mense waardeur hy verontreinig kan word, terwyl hy onbewus daarvan is, maar dit agterkom en daarom skuldig is; of “ ‘wanneer iemand 'n onbesonne eed aflê om daardeur kwaad of goed te doen, enigiets waaroor 'n mens 'n onbesonne eed kan aflê, terwyl hy onbewus daarvan is, maar dit agterkom, en daarom aan een van hierdie dinge skuldig is; “ ‘ moet hy, wanneer hy aan enige van al hierdie dinge skuldig is, belydenis doen oor die saak waarin hy gesondig het. “ ‘ Hy moet dan as boetedoening vir die Here 'n ooi uit die kleinvee bring, 'n skaap of 'n bok as •reinigingsoffer vir die sonde wat hy gedoen het. Die priester sal vir hom versoening doen vir sy sonde. Maar as hy nie 'n stuk kleinvee kan bekostig nie, moet hy as boetedoening vir sy sonde twee tortelduiwe of twee jong duiwe vir die Here bring, een as reinigingsoffer en een as •brandoffer. Hy moet dit vir die priester neem, en die priester moet die een wat as reinigingsoffer bedoel is, eerste naderbring en sy kop aan die voorkant van die nek afknyp, maar hy mag dit nie aftrek nie. Hy moet van die bloed van die reinigingsoffer teen die sykant van die altaar sprinkel en die bloed wat oorbly teen die basis van die altaar uitdruk. Dit is 'n reinigingsoffer. Die tweede duif moet hy, soos voorgeskryf word, as 'n brandoffer hanteer. Die priester sal vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het en hy sal vergewe word. Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer vir sy sonde 'n tiende van 'n efa gesifte meel as reinigingsoffer bring. Hy mag egter nie olyfolie daaroor gooi en wierook daarop neersit nie, omdat dit 'n reinigingsoffer is. Hy moet dit na die priester bring en die priester moet 'n hand vol daarvan neem as simboliese offer en dit op die altaar verbrand, saam met ander offergawes vir die Here. Dit is 'n reinigingsoffer. So sal die priester vir hom versoening doen vir enige van hierdie sondes wat hy gedoen het en sal hy vergewe word. Soos met die •graanoffer, kom die res van die offer die priester toe.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand reëls oortree en onopsetlik sondig teen iets wat aan die Here gewy is, moet hy 'n •hersteloffer vir die Here bring: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee, waarvan die loskoopwaarde, bereken in sikkel silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom, genoeg is vir 'n hersteloffer. Vir die sonde wat hy teen die heiligdom gedoen het, moet hy vergoeding betaal, 'n vyfde van die waarde byvoeg en dit vir die priester gee. Met die ram van die hersteloffer sal die priester vir hom versoening doen en hy sal vergewe word. “ As iemand, wanneer hy sondig deur onwetend te doen wat een van die gebooie van die Here sê nié gedoen mag word nie, skuldig is, moet hy sy skuld dra. Hy moet uit die kleinvee 'n ram sonder gebrek met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer vir die priester neem. Die priester sal vir hom versoening doen vir die fout wat hy onopsetlik en sonder om dit te besef, gemaak het, en hy sal vergewe word. Dit is 'n hersteloffer. Hy was beslis skuldig voor die Here. ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand sondig en teen die Here oortree deurdat hy teenoor 'n volksgenoot ontken dat iets aan hom in bewaring gegee of aan hom toevertrou is, of dat hy sy volksgenoot beroof of afgepers het, of wanneer hy verlore goedere gevind het, dit ontken en vals sweer oor enige van die dinge wat mense gewoonlik doen en daardeur sondig, dan moet hy, wanneer hy op hierdie manier gesondig het en skuldig is, teruggee wat hy geroof of afgepers het of wat aan hom in bewaring gegee is of die verlore goedere wat hy gevind het of enigiets waaroor hy vals gesweer het. Hy moet die waarde daarvan ten volle betaal en 'n vyfde daarby voeg. Op die dag van sy skulderkenning moet hy dit onverwyld betaal aan wie dit toekom. “ Sy •hersteloffer vir die Here moet hy na die priester toe neem: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee en met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer. Die priester moet vir hom versoening doen voor die Here en hy sal vergewe word vir enige van hierdie dinge wat hy gedoen en skuldig geword het.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Gee vir Aäron en sy seuns die volgende opdrag, ‘Dit is die voorskrifte vir die •brandoffer: Die brandoffer moet dwarsdeur die nag tot die volgende oggend op die vuurmaakplek op die altaar bly. Die altaar se vuur moet in die vuurmaakplek op die altaar aan die brand gehou word. Die priester moet sy linnekleed aantrek en ook 'n linnebroek oor sy onderlyf aanhê. Hy moet die vetterige as van die brandoffer wat deur die vuur op die altaar verteer is, opskep en dit langs die altaar neersit. Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek. Hy moet die vetterige as na 'n rein plek buite die kamp neem. Die vuur op die altaar moet aan die brand gehou word; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke môre hout op die vuur pak, die brandoffer daarop rangskik en die stukke vet van die •maaltydoffer daarop verbrand. Die vuur op die altaar moet voortdurend aan die brand gehou word en mag nie uitbrand nie. “ ‘En dit is die voorskrifte vir die •graanoffer: Die seuns van Aäron moet dit na die voorkant van die altaar voor die Here bring. Een van hulle moet 'n handvol van die graanoffer se gesifte meel en olie neem, asook al die wierook wat op die graanoffer lê. Hy moet die simboliese offer vir die Here op die altaar verbrand as 'n aangename geur. Wat daarvan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Dit moet ongesuurd wees en op 'n heilige plek geëet word; in die voorhof van die Tent van Ontmoeting moet hulle dit eet. Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit gegee as hulle deel van die offergawes aan My. Dit is 'n besonder heilige gawe, soos die •reinigingsoffer en die hersteloffer. Enige manlike nasaat van Aäron mag dit eet. Dit is die deel uit die offergawes vir die Here wat julle nageslag altyd moet kry. Alles wat daarmee in aanraking kom, is heilig.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Dit is die offer wat Aäron en sy seuns vir die Here moet bring vanaf die dag dat hy gesalf is: 'n tiende van 'n efa gesifte meel as 'n voortdurende graanoffer, die een helfte soggens en die ander helfte saans. Dit moet op 'n bakplaat voorberei word, deurgeknie met olyfolie. Jy moet dit in gebreekte stukkies as 'n graanoffer naderbring. Jy moet dit aanbied as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Die priester uit die nageslag van Aäron wat in sy plek gesalf is, moet dit voorberei. Dit is die deel wat die Here altyd moet kry. Met vuur moet dit verbrand word. Elke graanoffer van 'n priester moet 'n volledige offer wees; dit mag nie geëet word nie.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘Dit is die voorskrifte vir die reinigingsoffer: Op die plek waar die brandoffer voor die Here keelaf gesny word, moet die reinigingsoffer ook keelaf gesny word. Dit is besonder heilig. Die priester wat die reinigingsoffer hanteer, moet dit eet; op 'n heilige plek, in die voorhof van die Tent van Ontmoeting, moet dit geëet word. Alles wat aan die offervleis raak, is heilig. As van die bloed daarvan op 'n kledingstuk spat, moet jy die kledingstuk waarop dit gespat het, in 'n rein plek afspoel. Die kleipot waarin die offer gekook is, moet gebreek word, maar as dit in 'n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water gewas word. Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Dit is besonder heilig. Maar geen reinigingsoffer mag geëet word as van die bloed daarvan in die Tent van Ontmoeting ingeneem word om in die heiligdom versoening te doen nie. Dit moet met vuur verbrand word. “ ‘ Dit is die voorskrifte vir die •hersteloffer: Dit is besonder heilig. Op die plek waar die •brandoffer keelaf gesny word, moet die hersteloffer ook keelaf gesny word en die priester moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Al die vet daarvan moet hy naderbring: die vetstert en die vet wat die binnegoed bedek, asook die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. Die priester moet dit op die altaar verbrand. Dit is 'n offergawe aan die Here, 'n hersteloffer. Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Op 'n heilige plek moet dit geëet word. Dit is besonder heilig. “ ‘ By die hersteloffer geld dieselfde voorskrifte as by die •reinigingsoffer: Dit kom die priester toe wat die versoening daarmee doen. Wanneer 'n priester namens iemand 'n brandoffer bring, behoort die vel van die brandoffer wat hy bring aan die priester; dit kom hom toe. So behoort elke •graanoffer wat in 'n oond gebak is, of wat in 'n pan of op 'n bakplaat voorberei is, aan die priester wat die offer bring; dit kom hom toe. Elke ander graanoffer, of dit nou met olyfolie klam gemaak of droog is, kom al die seuns van Aäron toe, gelykop verdeel tussen hulle. “ ‘ Dit is die voorskrifte vir 'n •maaltydoffer wat vir die Here gebring word: As iemand dit uit dankbaarheid bring, moet hy saam met die •dankoffer ongesuurde brood aanbied: ringbrode, klam gemaak met olyfolie, platbrode, gesmeer met olyfolie, en gesifte meel, klam gemaak met olyfolie en deurgeknie. Saam met die ringbrode moet hy brood met suurdeeg gebak aanbied by sy maaltydoffer wat hy as dankoffer bring. Van elke soort brood van die offer moet hy een aanbied as 'n •wydingsgeskenk aan die Here. Dit is bedoel vir die priester wat die bloed van die maaltydoffer sprinkel; dit kom hom toe. Die vleis van sy maaltydoffer wat iemand uit dankbaarheid bring, moet op die dag van sy offer geëet word. Niks daarvan mag oorbly tot die volgende oggend nie. “ ‘As sy offergawe 'n slagoffer is, ná 'n gelofte of vrywillig, moet dit op dieselfde dag wat hy sy offer bring, geëet word. Wat daarvan oorbly tot die volgende dag, mag ook nog geëet word. Wat op die derde dag nog van die offervleis oor is, moet met vuur verbrand word. As daar wel van die vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die persoon wat die offer bring, nie aanvaar word nie. Dit sal nie in sy guns tel nie. Dit is iets walgliks en die persoon wat daarvan eet, sal sy skuld moet dra. Vleis wat raak aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie. Met vuur moet dit verbrand word. “ ‘Wat die offervleis betref: Enigiemand wat rein is, mag daarvan eet. Iemand wat, terwyl hy onrein is, die vleis eet van die maaltydoffer wat aan die Here behoort, sal van sy mense afgesny word. Wanneer iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou die onreinheid van 'n mens of 'n onrein dier is, of enigiets onreins wat afstootlik is, en hy eet van die vleis van die maaltydoffer wat aan die Here behoort, sal daardie persoon van sy mense afgesny word.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle mag nie enige vet van beeste, skape of bokke eet nie. Die vet van 'n dier wat doodgegaan het en die vet van 'n verskeurde dier mag gebruik word vir enige alledaagse take, maar dit mag beslis nie geëet word nie. Wanneer enigiemand vet eet van diere wat as offergawe na die Here gebring word, sal die persoon wat daarvan eet van sy mense afgesny word. Bloed mag julle glad nie eet nie, waar julle ook al woon; nie die bloed van voëls nie en ook nie die bloed van diere nie. Enigiemand wat enige bloed eet, sal van sy mense afgesny word.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Wie sy maaltydoffer vir die Here bring, moet self die deel van sy maaltydoffer wat aan die Here behoort, in die heiligdom inbring. Met sy eie hande moet hy die offergawe vir die Here indra; die vet moet hy saam met die borsstuk indra. Die borsstuk moet hy indra om dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. Die priester moet die vet op die altaar verbrand. Die borsstuk kom Aäron en sy seuns toe. Die regterboud van julle maaltydoffers moet julle as •wydingsgeskenk aan die priester gee. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed van die maaltydoffer en die vet naderbring, hy kry die regterboud as sy deel. Want die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die regterboud, wat die wydingsgeskenk is, het Ek uit die Israeliete se maaltydoffers geneem en aan die priester Aäron en sy seuns gegee as die deel wat hulle altyd by die Israeliete moet kry. Dit is aan Aäron en sy seuns toegewys uit die offergawes aan die Here op die dag toe hulle nadergebring is om as priesters vir die Here te dien. Dit is wat die Here beveel het die Israeliete aan hulle moet gee, op die dag dat Hy hulle gesalf het. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle nageslag.’ ” Dit is die voorskrifte vir die brandoffer, die graanoffer, die reinigingsoffer, die hersteloffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer wat die Here aan Moses as opdrag gegee het op die berg Sinai die dag toe hy die Israeliete in die Sinaiwoestyn beveel het om hulle offers aan die Here te bring. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Neem Aäron en sy seuns saam met hom, asook die klere, die salfolie, die bul vir die •reinigingsoffer, die twee ramme en die mandjie ongesuurde brood na die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Laat die hele geloofsgemeenskap ook daar bymekaarkom.” Moses het gemaak soos die Here hom beveel het en die geloofsgemeenskap het by die ingang van die Tent van Ontmoeting bymekaargekom. Toe sê Moses vir die volksvergadering: “Dit is wat die Here beveel het gedoen moet word.” Moses het vir Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water afgespoel. Hy het vir Aäron die priesterrok aangetrek, die lyfserp vir hom omgebind en die mantel om hom gehang. Toe het hy die efod oorgesit, die band daarvan om sy lyf gesit en dit styf vasgemaak. Hy het die borstas vir hom aangesit en die Urim en Tummim daarin gesit. Daarna het hy die •tulband op sy kop gesit en aan die voorkant van die tulband die goue roset, die heilige wydingsteken, vasgemaak soos die Here Moses beveel het. Moses het die salfolie geneem en die •tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig: Hy het die altaar sewe maal daarmee besprinkel. Hy het die altaar en al die toebehore daarvan, asook die waskom en sy voetstuk, gesalf om dit te heilig. Hy het van die salfolie oor Aäron se kop uitgegooi en hom gesalf om hom te heilig. Moses het die seuns van Aäron na vore laat tree en vir hulle priesterrokke aangetrek, vir hulle lyfserpe omgebind en vir hulle kopdoeke omgesit soos die Here hom beveel het. Daarna het hy die bul vir die reinigingsoffer laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop vir die reinigingsoffer geplaas. Moses het die bul keelaf gesny, van die bloed geneem en dit met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig en die res van die bloed teen die basis van die altaar uitgegooi. Hy het dit geheilig om versoening daarvoor te doen. Moses het al die vet aan die binnegoed, die lewerlob en die twee niere met die niervet geneem en dit op die altaar verbrand. Maar die bul – sy vel, sy vleis en die pensmis – het hy buite die kamp met vuur verbrand, soos die Here hom beveel het. Toe het hy die ram vir die •brandoffer laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny en die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die ram het hy in stukke opgesny en die kop, die stukke en die niervet verbrand. Die binnegoed en die pote het hy met water afgespoel. Moses het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die Here, soos die Here Moses beveel het. Toe het hy die tweede ram, die een vir die priesterwyding, laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny, van die bloed geneem en dit aan Aäron se regteroorlel, die duim van sy regterhand en die groottoon van sy regtervoet gesmeer. Moses het die seuns van Aäron ook laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlelle, hulle regterduime en regtergroottone gesmeer. Daarna het Moses die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Hy het die vet geneem: die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed is, asook die lob van die lewer, die twee niere met hulle vet en die regterboud. Uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor die Here was, het hy een ongesuurde ringbrood, een ongesuurde brood wat met olyfolie klam gemaak is en een platbrood geneem en dit op die vet en die regterboud neergesit. Hy het dit alles op die handpalms van Aäron en die handpalms van sy seuns geplaas, en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Moses het dit toe uit hulle hande geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Dit was 'n wydingsoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die Here. Moses het die borsstuk geneem en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, soos die Here hom beveel het. Moses het van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron en sy klere, en ook op sy seuns wat by hom was en hulle klere, gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere, en sy seuns saam met hom en hulle klere, geheilig. Toe sê Moses vir Aäron en sy seuns: “Kook die vleis voor die ingang van die Tent van Ontmoeting. Daar moet julle dit eet saam met die brood wat in die mandjie vir die priesterwyding is, soos wat ek beveel is, ‘Aäron en sy seuns moet dit eet’. Wat oorbly van die vleis en brood, moet julle met vuur verbrand. Van die ingang van die Tent van Ontmoeting mag julle sewe dae lank nie weggaan nie, tot op die dag wanneer julle priesterwyding voltooi is, want julle wyding moet sewe dae lank duur. Wat vandag gebeur het, is wat die Here beveel het gedoen moet word om vir julle versoening te doen. Voor die ingang van die Tent van Ontmoeting moet julle sewe dae lank bly, dag en nag. Julle moet die verpligting nakom wat die Here op julle lê, sodat julle nie sterf nie, want so is ek beveel.” Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here by monde van Moses beveel het. Op die agtste dag het Moses Aäron, sy seuns en die oudstes van Israel geroep. Hy het vir Aäron gesê: “Kry vir jou 'n bulkalf sonder gebrek vir 'n •reinigingsoffer en 'n ram sonder gebrek vir 'n •brandoffer en bring dit voor die Here. Jy moet ook met die Israeliete praat en sê, ‘Kry 'n bokram vir 'n reinigingsoffer, en vir 'n brandoffer 'n bulkalf en 'n skaaplam, albei 'n jaar oud en sonder gebrek, 'n bul en 'n ram om voor die Here te slag as 'n •maaltydoffer, en 'n •graanoffer wat met olyfolie klam gemaak is, want vandag gaan die Here aan julle verskyn.’ ” Hulle het alles wat Moses beveel het, na die voorkant van die Tent van Ontmoeting geneem en die hele volksvergadering het nader gegaan en voor die Here gaan staan. Toe sê Moses: “Dit is wat die Here julle beveel het om te doen, sodat die heerlikheid van die Here aan julle kan verskyn.” Daarna sê Moses vir Aäron: “Gaan na die altaar en maak jou reinigingsoffer en jou brandoffer gereed en doen versoening vir jou en jou mense. Maak ook die volk se offer gereed en doen vir hulle versoening, soos die Here beveel het.” Aäron het na die altaar gegaan en die bulkalf keelaf gesny as reinigingsoffer vir homself. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger in die bloed gedoop en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die basis van die altaar uitgegooi. Die vet, die niere en die lewerlob van die reinigingsoffer het hy op die altaar verbrand soos die Here Moses beveel het. Die vleis en die vel het hy buite die kamp met vuur verbrand. Toe het Aäron die brandoffer keelaf gesny; sy seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die brandoffer het hulle stuk vir stuk aan hom oorhandig, ook die kop, en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgespoel en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand. Daarna het hy die volk se offer laat nader kom. Hy het die bokram wat as reinigingsoffer vir die volk bedoel was, geneem, keelaf gesny en dit as reinigingsoffer gebring soos die eerste offer. Hy het die brandoffer laat nader kom en dit op die voorgeskrewe manier gereedgemaak en geoffer. Hy het ook die graanoffer laat naderbring, 'n handvol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die brandoffer van die oggend. Aäron het die bul en die ram, die maaltydoffer wat vir die volk bedoel was, keelaf gesny. Aäron se seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die stukke vet van die bul het hulle nadergebring, ook die vet van die ram: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, asook die niere en die lewerlob. Hulle het die vet op die borsstukke neergesit. Aäron het die vet op die altaar verbrand, maar die borsstukke en die regterboud het hy voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg, soos Moses beveel het. Aäron het sy hande na die volk opgelig en hulle geseën. Nadat die reinigingsoffer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring is, het hy afgeklim. Daarna het Moses en Aäron die Tent van Ontmoeting binnegegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die heerlikheid van die Here het aan die hele volk verskyn: 'n Vuur het van voor die Here uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en neergeval met hulle gesigte teen die grond. Nadab en Abihu, die seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat, gloeiende kole daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Toe het hulle hierdie ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring – wat nie volgens sy bevel was nie. Vuur het van voor die Here uitgegaan en hulle verteer, sodat hulle daar voor die Here gesterf het. Toe sê Moses vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het, “ ‘Deur diegene wat naby My is, moet Ek as heilig erken word; ten aanskoue van die hele volk moet Ek geëer word.’ ” Aäron het net geswyg. Moses het Misael en Elisafan, die seuns van Ussiël, die broer van Aäron se vader, geroep en vir hulle gesê: “Kom nader, dra julle medepriesters weg hier voor die heiligdom na buite die kamp.” Hulle het nader gekom en hulle in hulle priesterrokke na buitekant die kamp gedra soos Moses gesê het. Moses het vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar gesê: “Moenie julle hare laat loshang nie en moenie julle klere skeur nie, anders sterf julle en word die Here vertoornd vir die hele volksvergadering. Maar julle broers, die hele huis van Israel, mag treur oor die brand wat die Here laat ontvlam het. By die ingang van die •Tent van Ontmoeting mag julle nie uitgaan nie, sodat julle nie sterf nie; want die salfolie van die Here is aan julle.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het. Die Here het met Aäron gepraat en gesê: “ Wyn en sterk drank moet jy nie drink nie, nie jy of jou seuns by jou wanneer julle in die Tent van Ontmoeting ingaan nie, sodat julle nie sterf nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslag geld, met die oog daarop om te kan onderskei tussen wat heilig is en nie heilig nie, en tussen wat •onrein en rein is. So moet julle die Israeliete al die vaste voorskrifte leer wat die Here deur die diens van Moses aan hulle bekend gemaak het.” Moses het vir Aäron en sy oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem die •graanoffer wat oor is van die offergawes aan die Here en eet dit so ongesuurd langs die altaar, want dit is besonder heilig. Julle moet dit op 'n heilige plek eet, want dit is jou en jou seuns se deel uit die offergawes aan die Here; ja, so is ek beveel. Die borsstuk wat 'n gewyde gawe is, en die boud wat 'n •wydingsgeskenk is, moet julle op 'n rein plek eet – jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want dit is gegee as jou en jou kinders se deel uit die •maaltydoffers van die Israeliete. Die boud as 'n wydingsgeskenk en die borsstuk as 'n gewyde gawe bo-op die offergawes van die stukke vet moet hulle in die heiligdom inneem om dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. Dit is die deel wat jy en jou kinders saam met jou altyd moet kry, soos die Here beveel het. ” Moses het oral na die reinigingsbok gesoek, maar kyk, dit was verbrand! Hy het hom bloedig vererg vir Eleasar en Itamar, Aäron se oorblywende seuns en het gesê: “ Waarom het julle nie die •reinigingsoffer op 'n heilige plek geëet nie? Dit is tog besonder heilig! Dit is aan julle gegee om die skuld van die volksvergadering weg te neem deur vir hulle voor die Here versoening te doen. Kyk, die bloed daarvan is nie in die heiligdom ingeneem nie! Julle moes dit beslis in die heiligdom geëet het, soos ek beveel het.” Aäron het hom teen Moses verweer: “Kyk, vandag het hulle hulle reinigingsoffer en hulle •brandoffer voor die Here nadergebring, en nogtans het so iets my oorgekom. As ek vandag die reinigingsoffer geëet het, sou die Here dit goedgevind het?” Toe Moses dit hoor, was hy tevrede. Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Van al die diere op land mag julle die volgende eet: Alles wat volledig gesplete hoewe het en herkou, dié mag julle eet. “ ‘ Die volgende diere wat herkou of wat gesplete hoewe het, mag julle egter nie eet nie: “ ‘Kamele, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle •onrein; “ ‘Dassies, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein; “ ‘Hase, want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein; “ ‘ Varke, want hulle het volledig gesplete hoewe, maar hulle herkou nie – hulle is beslis vir julle onrein. “ ‘Van hulle vleis mag julle glad nie eet nie en aan hulle karkasse mag julle nie raak nie. Hulle is beslis vir julle onrein. “ ‘ Van alles wat in water is, mag julle die volgende eet: “ ‘Alles met vinne en skubbe wat in die oseane of in waterstrome leef, dít mag julle eet. Maar alles in die oseane of in waterstrome wat nie vinne of skubbe het nie – van alles wat krioel in water en van enige lewende wese wat in water hou – dit moet vir julle beslis afstootlik wees. Afstootlik moet dit vir julle wees: Julle mag nie van hulle vleis eet nie en hulle karkasse moet julle as afstootlik beskou. Alles in die water sonder vinne en skubbe moet vir julle beslis afstootlik wees. “ ‘ Die volgende diere met vlerke moet vir julle afstootlik wees en julle mag dit nie eet nie, hulle is beslis afstootlik: “ ‘gewone arende, breëkop-arende; swartaasvoëls, jakkalsvoëls en alle soorte valke; alle soorte kraaie; steenuile, ooruile; seemeeue; alle soorte kleinvalkies, naguiltjies; visarende; grasuile, nonnetjiesuile; bontkraaie; Egiptiese aasvoëls, ooievaars en alle soorte reiers; hoep-hoepe en vlermuise. “ ‘ Alle insekte met vlerke en vier pote is beslis vir julle afstootlik. Maar van dié met vlerke en vier pote mag julle egter wel dié eet wat gelede pote het om op die grond mee te spring. Van die volgende mag julle eet: alle soorte treksprinkane, veldsprinkane, krieke en koringkrieke. Alle ander insekte met vlerke en vier pote is egter beslis vir julle afstootlik. “ ‘ Julle word ook deur die volgende verontreinig, en elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand onrein wees en enigiemand wat 'n stuk van die karkas gedra het, moet sy klere was en sal tot die aand onrein wees: Die karkas van enige dier wat nie volledig gesplete hoewe het of wat nie herkou nie, is beslis vir julle onrein. Elkeen wat daaraan raak, sal onrein wees. Ook al die viervoetige diere wat op sagte pote loop, is vir julle beslis onrein. Elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand onrein wees. En iemand wat die karkasse gedra het, moet sy klere was en sal tot die aand onrein wees. Hulle is beslis onrein vir julle. “ ‘Onder die kruipende diere wat op die grond rondbeweeg, is die volgende vir julle onrein: muishonde, muise en alle soorte paddas, geitjies, likkewane, akkedisse, koggelmanders en verkleurmannetjies. Onder al die kruipende diere is hierdie diere vir julle onrein. Elkeen wat raak aan een van hulle wat dood is, sal tot die aand onrein wees. Enigiets waarop een van hulle wat dood is, val, sal onrein wees: Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, materiaal, leer of geweefde bokhaar, of vir enigiets wat daagliks gebruik word. Dit moet in water gedompel word en sal onrein wees tot die aand, maar is daarna weer rein. “ ‘ Wanneer een van hulle in 'n kleipot val, sal alles wat daarin is, onrein wees. Die pot moet gebreek word. Enige kos wat nog geëet kan word en waarop water uit so 'n pot gegooi word, is onrein. Ook enige vloeistof in so 'n pot, wat gedrink kan word, is onrein. Enigiets waarop een van hulle karkasse val, sal onrein wees. 'n Kleioond of 'n dubbele kookplek van klei moet afgebreek word. Dit is onrein en dit moet ook vir julle beslis onrein wees. 'n Fontein of ondergrondse opgaarplek vir water sal egter rein wees, maar iemand wat aan karkasse daarin raak, sal onrein wees. Wanneer van hulle karkasse val op enige saad vir saailinge wat uitgeplant moet word, sal dit beslis rein wees. Maar wanneer water op saad gegooi word en van hulle karkasse val dan daarop, is die saad vir julle onrein. “ ‘ Wanneer enige van die diere wat julle mag eet, vrek, sal iemand wat aan die karkas raak, onrein wees tot die aand. Iemand wat van die karkas eet, moet sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand. En iemand wat die karkas gedra het, moet ook sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand. “ ‘ Enige dier wat op die grond kruip, is beslis afstootlik. Dit mag nie geëet word nie. Van alles wat op die pens seil, van alles wat op vier pote beweeg – ook dié wat baie pote het – ja, van alles wat op die grond kruip, mag julle nie eet nie, want hulle is beslis vir julle afstootlik. Moet julleself nie deur enige van hierdie kruipende diere afstootlik maak nie. Julle mag julle nie met hulle verontreinig en daardeur onrein word nie; want Ek is die Here, julle God. Julle moet julleself heilig hou. Wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julleself nie verontreinig met diere wat op die grond kruip nie, want Ek is die Here wat julle uit Egipte laat optrek het om vir julle 'n God te wees. Wees dan heilig, want Ek is heilig. “ ‘Dit is die voorskrifte oor die diere en voëls en al die lewende wesens wat in die waters wemel en al die lewende wesens wat op die grond krioel, sodat julle kan onderskei tussen wat onrein en wat rein is, en tussen diere wat geëet mag word en dié wat nie geëet mag word nie.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê, ‘Wanneer 'n vrou swanger is en aan 'n seun geboorte gee, sal sy sewe dae lank •onrein wees. Sy sal onrein wees soos gedurende haar menstruasie. Op die agtste dag moet die seun se voorhuid besny word. Drie-en-dertig dae lank moet sy vanweë die bloeding vir reiniging tuis bly. Totdat die dae van haar reiniging verby is, mag sy nie aan enigiets wat heilig is, raak nie en mag sy glad nie na die heiligdom gaan nie. As sy aan 'n dogter geboorte skenk, sal sy twee weke lank onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie. Ses-en-sestig dae lank moet sy vanweë die bloeding vir reiniging tuis bly. “ ‘ Wanneer die dae van haar reiniging verby is – of sy nou aan 'n seun of aan 'n dogter geboorte geskenk het – moet sy 'n jaar oue lam as •brandoffer en 'n jong duif of tortelduif as •reinigingsoffer na die priester by die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring. Hy moet dit voor die Here naderbring om vir haar versoening te doen en dan sal sy gereinig wees van die vloei van haar bloed. Dit is die voorskrif vir 'n vrou wat geboorte skenk, of dit nou aan 'n seun of 'n dogter is. “ ‘As sy egter nie 'n skaap kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem: een as 'n brandoffer en een as 'n reinigingsoffer. Die priester sal dan vir haar versoening doen en sy sal rein wees.’ ” Die Here het met Moses en Aäron gepraat: “Wanneer iemand 'n swelsel of skurwe plek of ligte vlek op sy vel het wat velsiekte kan word, moet hy na Aäron, die hoëpriester, of na een van sy seuns, die priesters, gebring word. Die priester moet dan die aangetaste plek op die vel ondersoek: As die hare op die aangetaste plek wit geword het en dit lyk of die aantasting dieper as die vel is, dan is dit velsiekte. As die priester dit sien, moet hy hom •onrein verklaar. As dit 'n ligte vlek op die vel is en dit lyk nie dieper as die vel en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank afsonder. As die priester hom op die sewende dag ondersoek, en hy vind dat die aangetaste plek volgens sy waarneming dieselfde gebly het en nie op die vel versprei het nie, moet die priester hom weer 'n keer sewe dae lank afsonder. As die priester hom dan weer op die sewende dag ondersoek, en hy vind die aangetaste plek het dof geraak en het nie op die vel versprei nie, moet die priester hom rein verklaar. Dit is dan net 'n skurwe plek. Hy moet sy klere was, en dan is hy rein. Maar as die skurwe plek op die vel wel groter word nadat hy dit aan die priester getoon het om rein verklaar te word, moet hy hom weer aan die priester gaan toon. As die priester hom ondersoek en vind dat die skurwe plek op die vel groter geword het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is velsiekte. “Wanneer iemand velsiekte het, moet hy na die priester gebring word. As die priester hom ondersoek en vind dat daar 'n wit swelsel op die vel is en dit het die hare wit laat word, en dat daar rou weefsel in die swelsel is, is die siekte gevestig in sy vel. Die priester moet hom onrein verklaar en hom nie afsonder nie, want hy is onrein. Maar as die velsiekte wel op die vel versprei het sodat dit, so ver as wat die priester kan sien, die hele vel van die aangetaste persoon van kop tot tone bedek, en die priester ondersoek hom en vind dat die velsiekte wel sy hele liggaam bedek, moet hy die aangetaste persoon rein verklaar. Hy het heeltemal wit geword; hy is rein. Maar sodra daar rou weefsel op hom verskyn, is hy onrein. As die priester die rou weefsel sien, moet hy hom onrein verklaar. Die rou weefsel is onrein; dit is velsiekte. As die rou weefsel egter herstel en weer wit word, moet hy na die priester gaan. As die priester hom ondersoek en hy vind dat die aangetaste plek wit geword het, moet hy die aangetaste persoon rein verklaar; hy is rein. “ Wanneer daar op iemand se vel 'n sweer was wat gesond geword het en in die plek van die sweer ontstaan 'n wit swelsel of 'n bleekrooi ligte vlek, moet hy hom aan die priester gaan toon. As die priester dit ondersoek en vind dit lê onder die vel en die hare daarop het wit geword, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte wat in die sweer uitslaan. Maar as die priester dit ondersoek en vind dat daar geen wit hare op is nie, dat dit nie onder die vel is nie en dat dit dof geword het, moet die priester hom sewe dae lank afsonder. As dit dan wel in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. Maar as die ligte vlek dieselfde gebly het en nie versprei het nie, dan is dit 'n letsel van die sweer. Die priester moet hom rein verklaar. “Wanneer daar 'n brandwond op iemand se vel is en die rou weefsel van die wond word 'n bleekrooi of wit ligte vlek, en die priester ondersoek dit en vind dat die hare op die ligte vlek wit geword het en dit lyk dieper as die vel, is dit velsiekte wat in die brandplek uitslaan. Die priester moet hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. As die priester dit egter ondersoek en vind dat daar nie wit hare op die ligte vlek is nie, dat dit nie onder die vel is nie en dat dit dof geword het, moet die priester hom sewe dae lank afsonder. Die priester moet hom op die sewende dag ondersoek: As dit wel in die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is 'n geval van velsiekte. Maar as die ligte vlek dieselfde gebly het, nie in die vel versprei het nie en dof geword het, is dit die swelsel van die brandplek. Die priester moet hom rein verklaar, want dit is net die letsel van die brandwond. “Wanneer 'n man of 'n vrou 'n aangetaste plek op sy of haar kop, of in sy baard het, en die priester ondersoek die aangetaste plek en vind dat dit dieper lyk as die vel, en dat daar geel, dun hare op is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n uitslag, velsiekte van die kop of baard. Maar indien die priester die aangetaste plek van die uitslag ondersoek en hy vind dit lê nie dieper as die vel nie en daar is nie swart hare op nie, moet die priester die aangetaste persoon met die uitslag sewe dae lank afsonder. As die priester die aangetaste persoon op die sewende dag ondersoek en vind die uitslag het nie versprei nie, daar is nie geel hare op nie en die uitslag lê nie dieper as die vel nie, moet die persoon hom skeer. Die plek waar die uitslag is, moet hy egter nie skeer nie. Die priester moet die persoon met die uitslag dan weer sewe dae lank afsonder. As die priester die persoon met die uitslag op die sewende dag ondersoek en vind dat die uitslag nie in die vel versprei het nie en nie dieper as die vel lê nie, moet die priester hom rein verklaar. Hy moet sy klere was. Dan is hy rein. As die uitslag dan wel in die vel versprei nadat hy rein verklaar is, en die priester ondersoek dit, en vind die uitslag het versprei in die vel, hoef die priester nie te soek vir geel hare nie. Hy is onrein. Maar as die uitslag volgens sy waarneming dieselfde gebly het en daar groei swart hare op, het die uitslag genees. Hy is rein en die priester moet hom rein verklaar. “Wanneer daar ligte vlekke, wit vlekke op die liggaam van 'n man of vrou is, en die priester dit ondersoek en vind dat daar op die vel dowwe wit ligte vlekke is, is dit velverwitting wat op die vel uitslaan. Die persoon is rein. “Wanneer 'n man se hare bo-op sy kop uitval, raak hy maar net bles. Hy is rein. As die hare aan die voorkant van sy kop uitval, raak sy voorkop kaal. Hy is rein. Wanneer daar egter op sy bles of kaal voorkop 'n bleekrooi aangetaste plek is, is dit dalk velsiekte wat op sy bles of kaal voorkop uitslaan. As die priester hom ondersoek en vind dat die swelsel van die bleekrooi aangetaste plek op sy bles of kaal voorkop lyk soos velsiekte op die lyf, is dit 'n man met velsiekte; hy is onrein. Die priester moet hom beslis onrein verklaar. Dit is op sy kop waar hy aangetas is. “Iemand wat velsiekte êrens aan hom het, se klere moet geskeur wees, sy hare moet los hang en hy moet sy snor bedek. ‘Onrein! Onrein!’ moet hy uitroep. So lank as wat hy die velaandoening het, sal hy onrein wees; hy is onrein. Hy moet eenkant woon. Sy blyplek moet buite die kamp wees.” “Wanneer daar op 'n kledingstuk 'n mufkol verskyn, of dit nou 'n kledingstuk van wol of linne is, óf op die skering en inslag van linne en wol wat geweef word, óf op leer of enige gebruiksartikel van leer, en die besmetting op die kledingstuk, die skering en inslag, leer of enige leerartikel, is groenerig of rooierig, is dit met skimmel besmet. Dit moet vir die priester gewys word. Die priester moet die besmette artikel ondersoek en dit sewe dae lank afsonder. Hy moet op die sewende dag die besmette artikel ondersoek. Indien die besmetting versprei het op die kledingstuk, die skering en inslag of op die leer, waarvoor die leer ook al daagliks gebruik word, is die besmetting skadelike skimmel. Dit is onrein. Hy moet die kledingstuk, die skering en inslag van wol of linnestof, of enige leerartikel waarop die besmetting is, verbrand omdat dit skadelike skimmel is. Met vuur moet dit verbrand word. “As die priester dit egter ondersoek en vind dat die besmetting nie op die kledingstuk, skering en inslag of enige leerartikel versprei het nie, moet hy opdrag gee dat die artikel waarop die besmetting is, gewas word. Hy moet dit dan weer sewe dae lank afsonder. As die priester die besmette artikel ondersoek nadat dit gewas is en hy vind dat die besmetting volgens sy waarneming nie verander het nie, is dit onrein, al het dit nie versprei nie. Met vuur moet jy dit verbrand. Dit is swambesmetting, of dit nou aan die voor- of agterkant is. Maar as die priester dit ondersoek en vind dat die besmetting dof is nadat dit gewas is, moet hy dit uitskeur uit die kledingstuk, die leer of die skering en inslag. As dit egter weer verskyn op die kledingstuk, die skering en die inslag, of enige leerartikel, het dit hervat. Met vuur moet jy die artikel waarop die besmetting is, verbrand. Die kledingstuk, die skering en inslag of enige leerartikel wat jy gewas het en waaruit die besmetting verdwyn het, moet 'n tweede keer gewas word. Dit is dan rein. “Dit is die voorskrifte oor hoe om iets wat met skimmel besmet is, 'n kledingstuk van wol of linne, die skering en inslag van weefwerk of enige leerartikel, rein of onrein te verklaar.” Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: “ Dit is die voorskrifte wat geld vir iemand met velsiekte op die dag van sy reiniging: Hy moet na die priester gebring word. Die priester moet na hom toe uitgaan buite die kamp. Die priester moet hom ondersoek en as hy vind dat die aangetaste persoon van velsiekte genees is, moet hy opdrag gee dat twee lewendige rein voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie gebring word vir die een wat hom wil laat reinig. Die priester moet opdrag gee dat die een voël se kop oor 'n kleipot met vars water afgesny word. Die lewendige voël moet hy neem, en die stukkie sederhout, die karmosynrooi toutjie en die marjoleintakkie saam met die lewendige voël doop in die bloed van die ander voël waarvan die kop oor vars water afgesny is. Hy moet die bloed sewe maal sprinkel oor die persoon wat hom van die velsiekte wil laat reinig en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewendige voël oor die oop veld loslaat. Die een wat hom wil laat reinig, moet sy klere was, al sy hare afskeer en homself met water afspoel. Hy is dan rein en mag daarna in die kamp kom, maar hy moet sewe dae lank buite sy tent bly. Op die sewende dag moet hy weer al sy hare afskeer – sy kop, sy baard en sy wenkbroue. Ja, hy moet al sy hare afskeer. Hy moet sy klere was en sy lyf met water afspoel. Hy is dan rein. Op die agtste dag moet hy twee jong ramme sonder gebrek en een jaaroud ooitjie sonder gebrek neem, asook 'n •graanoffer van drie tiendes van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is en een log olyfolie. Die priester wat die reiniging voltrek, moet die man wat hom wil laat reinig daarmee voor die Here laat staan by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Die priester moet een van die jong ramme neem en dit saam met die log olyfolie naderbring as 'n •hersteloffer. Hy moet dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram keelaf sny waar die •reinigingsoffer en die •brandoffer keelaf gesny word, op 'n heilige plek, want soos die reinigingsoffer, kom die hersteloffer die priester toe. Dit is besonder heilig. Die priester moet van die hersteloffer se bloed neem en dit aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Daarna moet die priester die log olyfolie neem en daarvan in die palm van sy linkerhand uitgooi. Die priester moet sy regterwysvinger in die olyfolie in sy linkerpalm doop en met sy vinger sewe maal daarvan voor die Here sprinkel. Van die olyfolie wat in sy handpalm oor is, moet die priester aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die Here. Die priester moet dan die reinigingsoffer bring en versoening doen vir die een wat hom van sy •onreinheid wil laat reinig. Daarna moet hy die brandoffer keelaf sny. Die priester moet die brandoffer en graanoffer op die altaar offer. So doen die priester vir hom versoening. Hy is dan rein. “ Maar as die persoon arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy vir 'n hersteloffer een jong ram as gewyde gawe neem om vir hom versoening te doen, asook 'n tiende van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is as graanoffer, 'n log olyfolie daarby, en twee tortelduiwe of twee jong duiwe – wat hy ook al kan bekostig – een as reinigingsoffer en die ander as brandoffer. Hy moet dit op die agtste dag van sy reiniging na die priester bring by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here. Die priester moet die jong ram vir die hersteloffer en die log olyfolie neem en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram vir die hersteloffer keelaf sny en die priester moet van die bloed van die hersteloffer neem en dit aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Die priester moet van die olyfolie in sy linkerhandpalm uitgooi en met sy regterwysvinger moet hy van die olyfolie in sy linkerhandpalm sewe maal voor die Here sprinkel. Die priester moet van die olyfolie wat in sy handpalm is aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die Here. Die priester moet een elk van die tortelduiwe of van die jong duiwe as offer bring – wat die man ook al kan bekostig – een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer, saam met die graanoffer. So doen die priester vir die persoon wat hom wil laat reinig versoening voor die Here. Dit is die voorskrifte vir iemand met velsiekte wat nie die offers vir sy reiniging kan bekostig nie.” Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “ Wanneer julle in Kanaän kom, die land wat Ek vir julle as besitting gaan gee, en Ek tref 'n huis in dié land van julle met 'n skimmelplaag, moet die persoon aan wie die huis behoort, kom en vir die priester sê, ‘Dit lyk vir my daar is 'n skimmelplaag in die huis.’ Die priester moet opdrag gee dat die huis ontruim word voordat hy daar ingaan om die skimmelplaag te ondersoek, om te verhoed dat alles wat in die huis is, onrein word. Daarna kan die priester ingaan om die huis te ondersoek. As hy die skimmelplaag ondersoek en vind dat dit teen die mure van die huis groenerige of rooierige holtes maak wat lyk of dit onder die muur se oppervlak lê, moet die priester by die huis uitgaan na die ingang van die voorhof, en die huis sewe dae lank toesluit. Op die sewende dag moet die priester terugkeer. As hy die huis ondersoek en vind dat die skimmelplaag teen die mure van die huis versprei het, moet die priester opdrag gee dat die klippe waarop die skimmelplaag is, verwyder en buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Die huis se mure moet hy aan die binnekant reg rondom laat afskraap en die afgeskraapte grond moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe inbou. Hulle moet ook ander klei neem en die huis daarmee pleister. “Maar as die skimmelplaag weer in die huis uitslaan nadat die klippe uitgebreek en die huis afgeskraap en oorgepleister is, moet die priester in die huis ingaan. As hy die huis ondersoek en vind dat die plaag versprei het, is daar skadelike skimmel in die huis; dit is onrein. Die huis moet afgebreek word en die klippe, die hout en al die los grond van die huis moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Enigiemand wat die huis binnegaan gedurende die tyd wat dit gesluit is, sal tot die aand toe onrein wees. Iemand wat in die huis slaap, moet sy klere was en iemand wat in die huis eet, moet ook sy klere was. “As die priester egter in die huis ingaan en dit ondersoek en vind dat die skimmelplaag, nadat die huis gepleister is, nie versprei het nie, moet hy die huis rein verklaar omdat die skimmelplaag opgeklaar het. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie neem. Die een voël se kop moet hy oor 'n kleipot met vars water afsny. Hy moet die stukkie sederhout, die marjoleintakkie, die karmosynrooi toutjie en die lewendige voël neem en dit doop in die vars water en die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet dan die huis sewe keer besprinkel. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water, met die lewendige voël, die stukkie sederhout, die marjoleintakkie en die karmosynrooi toutjie. Die lewendige voël moet hy buite die stad in die oop veld loslaat. So sal hy versoening doen vir die huis. Dit sal dan rein wees. “ Dit is die voorskrifte vir enige geval van velsiekte en uitslag, vir skimmel op klere en in 'n huis, vir 'n swelsel, 'n skurwe plek en 'n ligte vlek, om te kan vasstel wanneer iets onrein is en wanneer dit rein is. “Dit dan wat betref die voorskrifte oor velsiekte en skimmel. ” Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer vog by enige man se geslagsorgaan uitvloei, is dit •onrein, en dit maak hom ook onrein solank die afskeiding duur. Of die afskeiding nou by sy geslagsorgaan uitvloei, en of sy geslagsorgaan verstop raak vanweë die afskeiding, dit maak hom onrein. Elke bed waarop die man met 'n afskeiding lê, word onrein en enigiets waarop hy sit, word onrein. Iemand wat aan sy bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Iemand wat op 'n voorwerp sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Iemand wat aan die man met die afskeiding raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Wanneer die man met die afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet daardie persoon sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Enige saal waarop die man met die afskeiding ry, is onrein, en elkeen wat raak aan iets wat onder hom was, is tot die aand onrein. Iemand wat dit optel, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Elkeen aan wie die man met die afskeiding raak sonder dat hy sy hande gewas het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 'n Kleipot waaraan die man met die afskeiding raak, moet gebreek word, en elke houtvoorwerp moet met water afgespoel word. “ ‘Wanneer die man met die afskeiding skoon is van sy afskeiding, moet hy self sewe dae vir sy reiniging aftel. Hy moet sy klere was en sy liggaam met lopende water afspoel. Dan is hy rein. Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en wanneer hy voor die Here by die ingang van die •Tent van Ontmoeting aankom, moet hy dit vir die priester gee. Die priester moet dit offer, die een as 'n •reinigingsoffer en die ander as 'n •brandoffer. Die priester moet voor die Here vir hom versoening doen vir sy afskeiding. “ ‘ Wanneer 'n man 'n saadstorting het, moet hy sy hele liggaam met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Enige kledingstuk en enige leervoorwerp waarop daar saad is, moet met water afgespoel word en sal tot die aand onrein wees. Wanneer 'n man met 'n vrou gemeenskap het en saad stort, moet hulle hulle met water afspoel. Hulle is onrein tot die aand. “ ‘ Wanneer 'n vrou 'n afskeiding het en die afskeiding is bloed uit haar liggaam, is die tydperk van haar onreinheid sewe dae. Elkeen wat aan haar raak, is onrein tot die aand. Enigiets waarop sy gedurende die tydperk van haar onreinheid lê, is onrein en enigiets waarop sy sit, is onrein. Elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Elkeen wat aan enigiets raak waarop sy gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. As hy raak aan iets wat op die bed is, of aan enigiets waarop sy sit, is hy onrein tot die aand. As 'n man tog met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees. Enige bed waarop hy lê, sal ook onrein wees. “ ‘Indien dit sou gebeur dat 'n vrou buite die tyd van haar menstruasie vir 'n lang tyd bloei of dat sy langer as haar menstruasie bloei, is sy onrein vir die duur van haar onrein afskeiding soos wanneer sy menstrueer: Sy is onrein. Enige bed waarop sy gedurende haar afskeiding lê, is soos die bed waarop sy tydens haar menstruasie lê, en enigiets waarop sy sit, is ook onrein soos wat dit sou wees tydens die onreinheid van haar menstruasie. Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. Indien sy skoon is van haar afskeiding, moet sy self sewe dae aftel. Daarna is sy rein. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en hulle na die priester by die ingang van die Tent van Ontmoeting bring. Die priester moet die een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer bring. So doen die priester voor die Here vir haar versoening vir haar onrein afskeiding.’ “Hou die Israeliete weg van dit wat hulle onrein maak, sodat hulle nie deur hulle onreinheid sterf wanneer hulle my •tabernakel wat in hulle midde staan, onrein maak nie. “Dit is die voorskrifte vir 'n man wat 'n afskeiding het en wat saad stort en daardeur onrein word, vir 'n vrou wat ongesteld is tydens menstruasie, vir 'n man of vrou met 'n afskeiding, en vir 'n man wat by 'n onrein vrou slaap.” Die Here het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns, toe hulle voor die Here nader gekom en gesterf het. Die Here het vir Moses gesê: “Praat met jou broer, Aäron. Hy mag nie enige tyd in die heiligdom agter die voorhangsel voor die versoendeksel ingaan wat op die ark is nie, sodat hy nie sterf nie, want Ek verskyn in die wolk bo die versoendeksel. “ Aäron moet met die volgende in die heiligdom ingaan: 'n jong bul as •reinigingsoffer en 'n ram as •brandoffer. Hy moet 'n heilige priesterrok van linne aantrek, 'n linnebroek oor sy onderlyf dra, hom met 'n linnelyfserp omgord en vir hom 'n linnetulband ombind. Dit is heilige klere. Hy moet sy lyf met water afspoel en dit dan aantrek. Uit die volksvergadering van die Israeliete moet hy twee bokramme vir 'n reinigingsoffer en 'n skaapram vir 'n brandoffer neem. Aäron moet die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, naderbring en versoening doen vir hom en sy huis. Hy moet die twee bokramme neem en hulle voor die Here by die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat staan. Aäron moet oor die twee bokke lootjies trek: een lootjie vir die Here en die ander vir Asasel. Aäron moet die bok wat vir die Here geloot is, naderbring en as 'n reinigingsoffer offer. Maar die bok wat vir Asasel geloot is, moet hy lewend voor die Here laat staan om die versoeningshandeling op hom uit te voer en hom dan vir Asasel na die woestyn te stuur. “ Nadat Aäron die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, nadergebring het om versoening te doen vir hom en sy huis, moet hy die bul keelaf sny as 'n reinigingsoffer vir homself. Hy moet die vuurpan neem, vol kole vuur wat van die altaar voor die Here af kom, asook twee hande vol fyngestampte geurige reukwerk, en daarmee agter die voorhangsel ingaan. Hy moet die reukwerk voor die Here op die kole gooi. Die wolk rook uit die reukwerk sal die versoendeksel wat oor die Getuienis is, verberg, sodat hy nie sterf nie. Hy moet van die bul se bloed neem en dit met sy vinger op die voorkant van die versoendeksel sprinkel. Voor die versoendeksel moet hy met sy vinger sewe maal van die bloed sprinkel. “ Daarna moet hy die bok wat vir die reinigingsoffer van die volk bedoel is, keelaf sny en die bloed agter die voorhangsel inneem. Hy moet met die bloed doen wat hy met die bul se bloed gedoen het en dit op die versoendeksel en ook voor die versoendeksel sprinkel. So doen hy versoening vir die heiligdom vanweë die •onreinheid van die Israeliete en hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Net so doen hy dit vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle met hulle onreinheid opgeslaan is. Geen mens mag in die Tent van Ontmoeting wees wanneer hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen nie, totdat hy uitkom en klaar versoening gedoen het vir homself, sy huis en die hele geloofsgemeenskap van Israel. “ Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en ook daarvoor versoening doen. Hy moet van die bul se bloed en van die bok se bloed neem en dit aan al die horings van die altaar smeer. Hy moet van die bloed met sy vinger sewe maal op die altaar sprinkel en dit reinig en heilig, vanweë die onreinheid van die Israeliete. “Wanneer die versoening vir die heiligdom, die Tent van Ontmoeting en die altaar afgehandel is, moet hy die lewendige bok naderbring. Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê, en dan oor die bok belydenis doen van al die skuld van die Israeliete, en al hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Hy moet die sondes so op die kop van die bok lê en hom dan, deur 'n man wat vooraf aangewys is, die woestyn in stuur. Die bok dra op hom al hulle skuld na 'n onherbergsame gebied. Die man moet die bok in die woestyn loslaat. “ Aäron moet in die Tent van Ontmoeting ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy die heiligdom binnegegaan het. Hy moet dit daar laat, sy liggaam met water afspoel op 'n heilige plek en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer vir die volk bring om vir homself en vir die volk versoening te doen. Die vet van die reinigingsoffer moet hy op die altaar verbrand. “ Die man wat die bok vir Asasel losgelaat het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan. “ Die bul vir die reinigingsoffer en die bok vir die reinigingsoffer, waarvan die bloed in die heiligdom ingeneem is om versoening te doen, moet uit die kamp uitgeneem en met vuur verbrand word: hulle velle, hulle vleis en hulle pensmis. Die man wat dit verbrand het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan. “ Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Die tiende dag van die sewende maand moet julle julle verootmoedig en nie julle daaglikse werk doen nie, die gebore Israeliete sowel as die •vreemdelinge wat tussen julle woon. Want op daardie dag moet Aäron vir julle versoening doen om julle te reinig van al julle sondes. Voor die Here moet julle rein wees. Dit geld vir julle as 'n buitengewone Sabbat. Julle moet julle verootmoedig. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld. Die priester wat in die plek van sy vader as priester gesalf en gewy is, moet die versoening doen. Hy moet linneklere aantrek, die klere van die heiligdom, en vir die Allerheiligste versoening doen. Vir die Tent van Ontmoeting en die altaar moet hy versoening doen. Hy moet ook vir die priesters en al die mense van die geloofsgemeenskap versoening doen. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Een keer per jaar moet daar vir die Israeliete versoening gedoen word vir al hulle sondes.” Aäron het toe gedoen wat die Here Moses beveel het. Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Praat met Aäron en sy seuns en met al die Israeliete en sê vir hulle, ‘Dit is wat die Here beveel het: As daar enigiemand van die huis van Israel is wat 'n bees, 'n skaap of 'n bok binne of buite die kamp keelaf sny, en wat dit nie na die Tent van Ontmoeting bring om dit vir die Here as offer aan te bied voor die •tabernakel van die Here nie, sal dit teen daardie man as bloedskuld gehou word. Hy het bloed vergiet en daardie man moet heeltemal van sy mense afgesny word.’ Dit is sodat die Israeliete hulle offerdiere wat hulle gewoonlik in die oop veld slag, vir die Here na die ingang van die •Tent van Ontmoeting moet bring, na die priester toe, en dat hulle dit as •maaltydoffers vir die Here moet slag. Die priester moet die bloed teen die altaar van die Here by die ingang van die Tent van Ontmoeting sprinkel en die vet verbrand as 'n aangename geur vir die Here. Hulle mag nie weer hulle offerdiere slag vir die •veldgode, agter wie hulle aan hoereer nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle en hulle nageslag. Vir hulle moet jy sê, ‘As daar enigiemand van die huis van Israel is, en van die •vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat 'n •brandoffer of maaltydoffer wil bring, en dit nie na die ingang van die Tent van Ontmoeting neem om dit vir die Here te offer nie, sal daardie man van sy mense afgesny word.’ ” “ As daar enigiemand uit die huis van Israel is, of van die vreemdelinge wat tydelik by hulle woon, wat enige bloed eet, sal Ek teen daardie persoon draai wat die bloed eet en Ek sal hom heeltemal van sy mense afsny. Omdat die lewe van 'n liggaam in die bloed is, het Ék vir julle die bloed gegee om by die altaar te gebruik, om versoening vir julle lewens te doen. Dit is immers die bloed wat deur die lewe vir 'n persoon versoening doen. Daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Niemand onder julle mag bloed eet nie. Die vreemdeling wat tydelik by julle woon, mag ook nie bloed eet nie.’ As daar enigiemand onder die Israeliete is, en van die vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat wild of 'n voël jag wat geëet mag word, moet hy die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond bedek, want dit is elke dier se lewe. Sy bloed is sy lewe, daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Julle mag glad nie die bloed van enige dier eet nie, want die lewe van elke dier is sy bloed. Elkeen wat dit eet, sal afgesny word.’ Enigiemand onder die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat iets eet wat doodgegaan het of verskeur is, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy sal •onrein wees tot die aand. Dan is hy rein. As hy nie sy klere was en sy liggaam met water afspoel nie, sal hy sy skuld moet dra.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Ek is die Here julle God. Die gebruike van Egipteland, waar julle gewoon het, mag julle nie nadoen nie, en die gebruike van die land Kanaän, waarheen ek julle gaan neem, mag julle nie nadoen nie; volgens hulle voorskrifte mag julle nie leef nie. My bepalings moet julle uitvoer en my vaste voorskrifte moet julle noukeurig volg. Ek is die Here julle God. Kom my vaste voorskrifte en bepalings na; die mens wat dit doen, sal daardeur lewe. Ek is die Here. “ ‘Geen man onder julle mag naby enige bloedverwant kom met die doel om naaktheid te ontbloot nie. Ek is die Here. Die naaktheid wat aan jou vader behoort, naamlik die naaktheid van jou moeder, mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou moeder. Jy mag nie haar naaktheid ontbloot nie. Die naaktheid van 'n vrou van jou vader mag jy nie ontbloot nie. Dit is jou vader se naaktheid. Die naaktheid van jou suster, jou vader of jou moeder se dogter, mag jy nie ontbloot nie, of sy nou as deel van die huishouding gebore is of nie. Jy mag hulle naaktheid nie ontbloot nie. Die naaktheid van jou seun se dogter of jou dogter se dogter mag jy nie ontbloot nie – dit is immers jou eie naaktheid. Die naaktheid van 'n dogter van 'n vrou van jou vader, wat deur jou vader verwek is – sy is jou suster, jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. Die naaktheid van jou vader se suster mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou vader se bloedverwant. Die naaktheid van jou moeder se suster mag jy nie ontbloot nie, want sy is jou moeder se bloedverwant. Die naaktheid wat aan jou vader se broer behoort, mag jy nie ontbloot nie. Jy mag nie naby sy vrou kom nie. Sy is jou tante. Die naaktheid van jou skoondogter mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. Die naaktheid van jou broer se vrou mag jy nie ontbloot nie. Dit is jou broer se naaktheid. Die naaktheid van 'n vrou en haar dogter mag jy nie ontbloot nie. Die dogter van jou vrou se seun en die dogter van haar dogter mag jy nie as vrou neem om haar naaktheid te ontbloot nie. Hulle is haar bloedverwante. Dit sou 'n skanddaad wees. “ ‘Jy mag nie, om haar naaktheid te ontbloot, 'n vrou as tweede vrou by haar suster neem, terwyl dié nog lewe nie. En jy mag nie naby 'n vrou kom om haar naaktheid te ontbloot terwyl sy •onrein is tydens haar menstruasie nie. Jy mag nie met jou volksgenoot se vrou gemeenskap hê en deur haar onrein raak nie. “ ‘ Jy mag nie iemand uit jou nageslag aanbied om hulle aan Moleg toe te wy nie. Jy mag nie die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here. “ ‘ By 'n man mag jy nie slaap soos jy by 'n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks. Met geen dier mag jy geslagsgemeenskap hê en daardeur onrein raak nie. 'n Vrou mag nie voor 'n dier gaan staan om te paar nie. Dit is skandalig. “ ‘ Julle moet julle nie op al hierdie maniere verontreinig nie, want op al hierdie maniere het die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, hulle verontreinig. Die land het onrein geword. Ek het die land tot verantwoording geroep oor haar sondeskuld en sy het haar inwoners uitgespoeg. “ ‘Julle moet my vaste voorskrifte en bepalings nakom. Julle mag nie enige van hierdie afstootlike dinge doen nie, die gebore Israeliete én die •vreemdelinge wat tussen julle woon. Want al hierdie afstootlike dinge het die mense wat voor julle in die land was, gedoen, en die land het onrein geword. Die land mag ook julle nie uitspoeg omdat julle haar verontreinig soos dit die nasies wat voor julle daar was, uitgespoeg het nie. Ja, elkeen wat enige van hierdie afstootlike dinge doen – die persone wat dit doen, moet uit die midde van hulle volk verwyder word. Julle moet die verpligtinge wat Ek julle oplê, nakom, deur geeneen van die afstootlike voorskrifte uit te voer wat voor julle gedoen is nie. Julle mag julle nie daardeur verontreinig nie. Ek is die Here, julle God.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die hele volksvergadering van die Israeliete en sê vir hulle, ‘Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig. Elkeen van julle moet vir sy moeder en vader ontsag hê, en my Sabbatte moet julle onderhou. Ek is die Here julle God. Moet julle nie tot nikswerd afgode wend nie. Gegote beelde mag julle nie vir julle maak nie. Ek, die Here, is julle God. “ ‘ Wanneer julle vir die Here 'n •maaltydoffer slag, moet julle dit so slag dat dit tot julle voordeel strek. Op die dag wanneer julle offer, moet dit geëet word, of die dag daarna. Wat tot die derde dag oorbly, moet met vuur verbrand word. As dit wel op die derde dag geëet word, is dit iets walgliks. Dit is nie aanvaarbaar nie. Die een wat dit eet, sal sy sondeskuld dra, omdat hy dit wat heilig is vir die Here, ontheilig het. Daardie persoon moet uit sy volk verwyder word. “ ‘ Wanneer julle die graanoes van julle grond insamel, mag jy nie die kant van jou land skoon afoes nie, en die oesreste mag jy nie optel nie. Jy mag nie die naoes van jou wingerd afoes nie, en die trosse wat val, mag jy nie optel nie. Vir die weerlose en die •vreemdeling moet jy dit agterlaat. Ek is die Here julle God. “ ‘ Julle mag nie steel nie, julle mag nie lieg nie, en julle mag as volksgenote mekaar nie bedrieg nie. Julle mag nie in my Naam 'n vals eed aflê en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here. Jy mag nie jou naaste uitbuit en beroof nie. Jy mag nie die loon van 'n dagloner deur die nag by jou hou tot die oggend nie. Jy mag 'n dowe nie vervloek nie en voor 'n blinde nie 'n struikelblok lê nie. Jy moet vir jou God ontsag hê. Ek is die Here. “ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak nie. Jy mag nie partydig wees vir armes of voorkeur gee aan belangrikes nie. Oordeel jou volksgenoot regverdig. Jy mag nie as 'n kwaadstoker tussen jou mense rondgaan nie; jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. “ ‘ Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie 'n misstap teen hom bly hou nie. Jy mag nie haatdraend wees en 'n wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here. “ ‘ My vaste voorskrifte moet julle nakom. Jy mag onder jou diere nie verskillende soorte laat paar nie. Op jou land mag jy nie verskillende soorte saad saai nie. Klere van verskillende soorte materiaal mag jy nie dra nie. “ ‘ Wanneer 'n man by 'n vrou slaap en sy is 'n slavin wat aan 'n ander man toegesê is, maar die vrykooptransaksie is nie afgehandel nie of vryheid is nog nie aan haar toegeken nie, moet daar skadevergoeding wees. Hulle mag nie doodgemaak word nie, want sy was nie vry nie. Die man moet sy •hersteloffer vir die Here na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring, 'n ram as hersteloffer. Die priester moet met die ram van die hersteloffer vir hom voor die Here versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het. Dan sal hy vergewe word vir die sonde wat hy gedoen het. “ ‘Wanneer julle in die land aankom en allerhande vrugtebome plant, moet julle die vrugte daarvan as verbode beskou. Vir drie jaar moet dit vir julle verbode wees; dit mag nie geëet word nie. In die vierde jaar moet al die vrugte daarvan heilige lofoffers vir die Here wees. In die vyfde jaar mag julle die vrugte daarvan eet om die opbrengs daarvan vir julle steeds meer te maak. Ek is die Here julle God. “ ‘ Julle mag nie vleis eet met die bloed nog daarin nie. Julle mag nie voorspellings maak uit voortekens nie, en julle mag nie waarsêery beoefen nie. Julle mag nie die hare op julle slape afknip nie. Jy mag nie die kant van jou baard wegsny nie. Julle mag nie snye op julle liggame maak vir 'n afgestorwene nie, en julle mag julle nie tatoeëer nie. Ek is die Here. “ ‘ Jy mag jou dogter nie onteer deur van haar 'n prostituut te maak nie, sodat hoerery nie in die land posvat en die land vol skanddade word nie. “ ‘ My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die Here. “ ‘ Moet julle nie wend tot waarsêergeeste nie, en by voorvadergeeste moet julle nie hulp soek nie. Dit is net om deur hulle •onrein te word. Ek, die Here, is julle God. “ ‘ Vir 'n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan 'n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die Here. “ ‘ Wanneer 'n vreemdeling by jou verblyf het in julle land, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat verblyf by julle het, moet vir julle net soos 'n gebore Israeliet by julle wees. Jy moet vir hom lief wees soos vir jouself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipteland. Ek is die Here julle God. “ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak wanneer dit gaan oor lengte, gewig en inhoudsmaat nie. Julle moet 'n onvervalste weegskaal, onvervalste gewigte, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste hin hê. Ek is die Here julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom; julle moet dit uitvoer. Ek is die Here. ’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Vir die Israeliete moet jy sê, ‘Enigiemand onder die Israeliete en onder die •vreemdelinge met tydelike verblyf in Israel wat van sy nageslag aan Moleg afstaan, moet beslis sterf. Die volk van die land moet hom met klippe doodgooi; anders sal Ek self teen daardie man draai en hom uit die midde van sy volk verwyder, omdat hy van sy nageslag afgestaan het aan Moleg om so my heiligdom te verontreinig en my heilige Naam te ontheilig. Ja, as die volk van die land hulle oë dig sluit vir daardie man en hom nie doodmaak wanneer hy van sy nageslag aan Moleg afstaan nie, sal Ek My teen daardie man en sy familie rig, en Ek sal hom en almal wat agter hom aan hoereer en sodoende agter Moleg aan hoereer, verwyder uit die midde van hulle volk. “ ‘ En iemand wat hom wend tot waarsêergeeste en voorvadergeeste om agter hulle aan te hoereer – Ek sal teen so iemand draai en hom uit die midde van sy volk verwyder. “ ‘ Sorg dat julle heilig bly; wees heilig, want Ek, die Here, is julle God. Julle moet my vaste voorskrifte nakom en dit uitvoer. Ek is die Here wat julle heilig maak. “ ‘ As daar enigiemand is wat sy vader en sy moeder vervloek, moet hy beslis sterf. Hy het sy vader en sy moeder vervloek, sy bloedskuld is op hom. As daar iemand is wat owerspel pleeg met 'n vrou, moet daardie man wat owerspel pleeg met sy naaste se vrou beslis sterf – die owerspeler én die owerspeelster. As daar iemand is wat by sy vader se vrou slaap, het hy naaktheid wat aan sy vader behoort, ontbloot. Hulle moet albei beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. As daar iemand is wat by sy skoondogter slaap, moet hulle albei sterf. Hulle het iets skandaligs gedoen. Hulle bloedskuld is op hulle. As daar iemand is wat by 'n manlike persoon slaap soos by 'n vrou, het hulle albei iets afstootliks gedoen. Hulle moet beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. As daar iemand is wat met 'n vrou en haar moeder trou, is dit 'n skanddaad. Die mense moet hom en die vroue met vuur verbrand. Daar mag nie so 'n skanddaad onder julle wees nie. As daar 'n man is wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet hy beslis sterf en die dier moet julle doodmaak. As daar 'n vrou is wat na enige dier gaan om daarmee te paar, moet die vrou en die dier doodgemaak word. Hulle moet beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. As daar 'n man is wat sy suster, 'n dogter van sy vader of sy moeder, vat, en hy sien haar naaktheid en sy sien sy naaktheid, is dit 'n skande. Hulle moet voor die oë van hulle mense verwyder word. Die naaktheid van sy suster het hy ontbloot; sy skuld moet hy dra. As daar 'n man is wat by 'n vrou slaap wat ongesteld is en hy ontbloot haar naaktheid – hy lê haar bron bloot en sy ontbloot die bron van haar bloeding – dan moet hulle albei verwyder word uit die midde van hulle volk. Die naaktheid van jou moeder se suster of jou vader se suster mag jy nie ontbloot nie. As iemand 'n bloedverwant ontbloot, moet hulle hulle skuld dra. As daar 'n man is wat by sy tante slaap, het hy die naaktheid wat aan sy oom behoort, ontbloot. Hulle moet hulle sonde dra: Kinderloos sal hulle sterf. As daar 'n man is wat sy broer se vrou vat, het hy die naaktheid wat aan sy broer behoort, ontbloot – dit is besoedeling. Kinderloos sal hulle wees. “ ‘ Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom en dit uitvoer sodat die land waarheen Ek julle gaan neem om in te woon, julle nie ook uitspoeg nie. Julle mag nie die gebruike volg van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf nie, want hulle het al hierdie dinge gedoen, en Ek het 'n afsku in hulle gehad. Ek het vir julle gesê, “Julle sal hulle grondgebied in besit neem. Ek self gee dit vir julle as besitting – 'n land wat oorloop van melk en heuning.” Ek, die Here, is julle God wat julle van die ander volke afgesonder het. “ ‘ Julle moet die rein diere onderskei van •onreines en die rein voëls van onreines. Julle mag nie julleself walglik maak deur diere of voëls of enigiets wat op die grond kruip, wat Ek vir julle as onrein afgesonder het nie. Julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig en Ek het julle van die volke afgesonder om aan My te behoort. “ ‘As daar 'n man of 'n vrou is in wie daar 'n waarsêergees of voorvadergees is, moet hulle beslis sterf. Die mense moet hulle met klippe doodgooi. Hulle bloedskuld is op hulle.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Praat met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle, ‘'n Priester mag hom nie met 'n dooie persoon onder sy mense verontreinig nie, behalwe iemand wat sy naby bloedverwant is: sy moeder en vader, sy seun en dogter, sy broer en sy maagdelike suster wat 'n naby bloedverwant is, wat nie 'n man het nie. Met hulle mag hy hom verontreinig. As eggenoot mag hy homself nie verontreinig onder sy mense om homself so te ontheilig nie. “ ‘ Priesters mag nie 'n kaal kol op hulle koppe skeer nie; die kante van hulle baarde mag hulle nie afskeer en aan hulle liggame mag hulle nie snye maak nie. Hulle moet heilig wees vir hulle God en nie die Naam van hulle God ontheilig nie. Omdat hulle die offergawes aan die Here, die voedsel van hulle God, by die altaar aanbied, moet hulle heilig wees. “ ‘ Hulle mag nie vroue neem wat hoereer en nie meer maagde is nie. Vroue wat deur hulle mans verstoot is, mag hulle ook nie neem nie; want 'n priester is heilig vir sy God. Erken 'n priester se heiligheid, want hy bied die voedsel van jou God by die altaar aan. Hy moet vir jou heilig wees, want Ek, die Here, wat julle heilig, is heilig. As die dogter van 'n priester haarself verontreinig deur hoerery, verontreinig sy ook haar vader. Sy moet met vuur verbrand word. “ ‘ Die priester wat die grootste onder sy broers is, op wie se kop die salfolie gegiet is, wat gewy is om die priesterklere aan te trek – die hare op sy kop mag hy nie laat loshang nie en sy klere mag hy nie skeur nie. By geen dooie mag hy kom nie; selfs deur sy vader of sy moeder mag hy hom nie verontreinig nie. Hy mag nie eers by die heiligdom uitgaan en so die heiligdom van sy God ontheilig nie. Die wyding met die salfolie van sy God rus immers op hom. Ek is die Here. “ ‘ Hy mag net met 'n maagd trou. 'n Weduwee, 'n geskeide vrou, iemand wat nie meer 'n maagd is nie en 'n hoer, mag hy nie as vrou neem nie. Slegs 'n maagd uit sy eie mense mag hy as vrou neem. Hy mag nie sy nageslag onder sy mense ontheilig nie, want Ek, die Here heilig hom.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met Aäron en sê vir hom, ‘Niemand uit jou nageslag aan wie daar 'n liggaamsgebrek is, mag tot in alle geslagte nader kom om die voedsel van sy God by die altaar aan te bied nie. Ja, niemand met 'n liggaamsgebrek mag nader kom nie: nie 'n man wat blind of mank is, met 'n haaslip of 'n abnormale ledemaat, of 'n man wat 'n breuk aan sy voet of hand gehad het, of wat 'n boggelrug het, of 'n dwerg is, of met 'n pêrel op sy oog of 'n swerende uitslag of skurfsiekte of vergruisde testikels nie. Niemand uit die nageslag van Aäron, die priester, aan wie daar 'n liggaamsgebrek is, mag nader kom om die offergawes vir die Here aan te bied nie. Hy het 'n liggaamsgebrek, hy mag nie nader kom om voedsel aan sy God aan te bied nie. Die voedsel van sy God uit die •besonder heilige gawes en uit die •heilige gawes mag hy eet; maar na die voorhangsel mag hy nie gaan nie en by die altaar mag hy nie kom nie, want hy het 'n liggaamsgebrek. Hy mag nie my heilige voorwerpe ontheilig nie, want Ek, die Here, heilig dit.’ ” Moses het toe met Aäron en met sy seuns en met al die Israeliete gepraat. Die Here het vir Moses gesê: “ Praat met Aäron en sy seuns, sodat hulle die •heilige gawes wat die Israeliete aan My toewy, met eerbied hanteer en my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die Here. Sê vir hulle, ‘As daar onder toekomstige geslagte enigiemand van julle nakomelinge is, wat terwyl hy •onrein is, naby die heilige gawes kom wat die Israeliete aan die Here gewy het, moet daardie persoon uit my teenwoordigheid verwyder word. Ek is die Here. Enige man uit die nageslag van Aäron wat 'n velsiekte of afskeiding het, mag totdat hy rein is, nie van die heilige gawes eet nie. Iemand wat aan enigiets raak wat deur 'n lyk verontreinig is, of 'n man wat 'n saadvloeiing gehad het, of 'n man wat aan enige kruipende dier geraak het waardeur hy onrein geword het, of aan 'n mens deur wie hy op enige wyse onrein geword het – so iemand sal onrein wees tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige gawes eet nie. Maar as hy sy liggaam met water afgespoel en die son ondergegaan het, is hy rein. Daarna mag hy van die heilige gawes eet, want dit is sy brood. Iets wat doodgegaan het of verskeur is, mag hy nie eet nie sodat hy nie daardeur onrein word nie. Ek is die Here. Die priesters moet die verpligtinge nakom wat Ek oplê. Hulle moet nie skuld op hulle laai en sterf omdat hulle die heilige gawes ontheilig het nie. Ek, die Here, heilig hulle. “ ‘ Geen onbevoegde persoon mag eet wat heilig is nie. 'n Priester se bywoner of dagloner mag nie eet wat heilig is nie. Maar wanneer 'n priester met sy geld iemand as sy besitting koop, mag so iemand daarvan eet; en slawe wat in sy huis gebore is, hulle mag ook van sy brood eet. Wanneer die dogter van 'n priester met 'n onbevoegde persoon getroud is, mag sy nie meer van die •wydingsgeskenk van heilige gawes eet nie. Maar wanneer die dogter van 'n priester 'n weduwee word, of verstoot word, en sy geen nageslag het nie en na haar vader se huis terugkeer soos in haar jeug, mag sy van haar vader se brood eet. Geen onbevoegde persoon mag daarvan eet nie. Wanneer iemand onopsetlik iets eet wat heilig is, moet hy die heilige gawe aan die priester teruggee en 'n vyfde byvoeg. Die priesters mag nie die heilige gawes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenke aan die Here gee, ontheilig nie. Wanneer hulle die heilige gawes eet, sal hulle skuld wat boetedoening vereis op die Israeliete laai, want Ek, die Here, heilig dit.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Praat met Aäron en sy seuns en met al die Israeliete en sê vir hulle, ‘Enige man uit die huis van Israel en uit die •vreemdelinge in Israel wat sy offer bring – naamlik enige van die gelofte- of vrywillige offers wat hulle as •brandoffer vir die Here bring – moet 'n manlike dier sonder gebrek uit die beeste, die skape of die bokke bring, sodat dit tot julle voordeel strek. Geen dier met 'n liggaamsgebrek mag julle bring nie, want dit sal nie tot julle voordeel strek nie. Wanneer iemand vir die Here 'n •maaltydoffer uit die grootvee of die kleinvee aanbied om 'n gelofte te vervul, of as 'n vrywillige offer, moet dit sonder gebrek wees om aanvaar te word. Dit mag geen liggaamsgebrek hê nie, nie blindheid of 'n beenbreuk of verminking of vratte of 'n swerende uitslag of skurfsiekte nie. Sulke diere mag julle nie vir die Here aanbied nie. Julle mag dit nie as 'n offergawe op die altaar van die Here lê nie. 'n Bees of 'n stuk kleinvee met 'n abnormale lang of kort ledemaat – as vrywillige offer mag jy dit bring, maar vir 'n gelofte sal dit nie aanvaar word nie. 'n Dier met papgedrukte, vergruisde, afgetrekte of afgesnyde testikels mag julle nie vir die Here bring nie. In julle land mag julle dit nie doen nie. Ook uit die hand van 'n buitelander mag julle nie enige van hierdie diere as voedsel vir julle God aanbied nie, want hulle is vermink, met 'n liggaamsgebrek. Hulle sal nie tot julle voordeel aanvaar word nie.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “ Wanneer 'n bees of skaap of bok gebore word, moet dit sewe dae lank by sy ma bly, maar van die agtste dag af en daarna is dit aanvaarbaar as 'n offergawe aan die Here. Julle mag nie 'n koei of 'n ooi en haar kleintjie op dieselfde dag slag nie. Wanneer julle 'n •dankoffer vir die Here slag, moet julle dit offer sodat dit tot julle voordeel strek. Dit moet op dieselfde dag geëet word. Julle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Ek is die Here. “ ‘ Julle moet my bevele nakom en dit uitvoer. Ek is die Here. Julle mag my heilige Naam nie ontheilig nie, sodat Ek onder die Israeliete as die Heilige geld. Ek, die Here, heilig julle, Ek, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here. ’ ” Die Here het vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘My feesdae, die feesdae van die Here wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep, is die volgende: Ses dae lank moet werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen werk doen nie. Dit is 'n Sabbat vir die Here, waar julle ook al woon. “ ‘Die feesdae van die Here, die heilige byeenkomste wat julle moet uitroep op hulle vaste tye, is die volgende: “ ‘ In die eerste maand, op die veertiende van die maand teen laatmiddag is dit die Pasga van die Here. Op die vyftiende dag van hierdie maand begin die Fees van Ongesuurde Brood vir die Here. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die Here bring. Op die sewende dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee en julle die graanoes insamel, moet julle die eerste gerf van julle graanoes na die priester bring. Hy moet die gerf voor die Here aanbied dat dit tot julle voordeel strek. Op die dag ná die Sabbat moet die priester dit aanbied. Op die dag wanneer julle die gerf aanbied, moet julle 'n jaaroud lam sonder gebrek as •brandoffer vir die Here bring met die bepaalde •graanoffer van twee tiendes van 'n efa gesifte meel met olyfolie gemeng, as 'n offergawe aan die Here, 'n geurige offer, asook die bepaalde •drankoffer van 'n kwart hin wyn. Brood en geroosterde en vars graan mag julle nie tot op daardie bepaalde dag eet nie, totdat julle die offer vir julle God gebring het. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon. “ ‘ Vanaf die dag ná die Sabbat, vanaf die dag waarop julle 'n gerf as gewyde gawe bring, moet julle die dae aftel: Sewe volle weke moet dit wees. Julle moet vyftig dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbat. Bring dan 'n nuwe graanoffer vir die Here. Van die plekke waar julle woon, moet julle twee brode as gewyde gawe saambring, wat van twee tiendes van 'n efa gesifte meel berei moet word. Dit moet met suurdeeg gebak word as eerste opbrengs van die oes vir die Here. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder gebrek, een jong bul en twee ramme as offers aanbied. Dit moet brandoffers vir die Here wees, saam met die bepaalde graan- en drankoffers – 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here. Julle moet as 'n •reinigingsoffer een bokram offer, en twee jaaroud lammers as 'n •maaltydoffer. Die priester moet hulle – die twee lammers – saam met die brood van die oes se eerste opbrengs, voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is 'n heilige gawe aan die Here wat die priester toekom. “ ‘Julle moet op daardie bepaalde dag 'n byeenkoms saamroep. Dit moet vir julle heilig wees; julle mag geen gewone take verrig nie. Dit is vir altyd 'n vaste voorskrif vir julle nageslagte, waar julle ook al woon. Wanneer julle die graanoes op julle lande insamel, mag jy nie die kant van jou land skoon afoes nie, en jou oesreste mag jy nie optel nie. Vir die weerloses en •vreemdelinge moet jy dit agterlaat. Ek is die Here jou God.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Die eerste dag van die sewende maand moet vir julle 'n buitengewone Sabbat wees, 'n herdenkingsdag, aangekondig met geskal, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie en julle moet 'n offergawe vir die Here bring.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Onthou net, die tiende dag van hierdie sewende maand is die •Dag van Versoening. Julle moet 'n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig en vir die Here 'n offergawe aanbied. Julle mag nie enige werk op dié bepaalde dag doen nie, want dit is die Dag van Versoening om vir julle voor die Here julle God versoening te doen. Ja, enige persoon wat hom nie op dié bepaalde dag verootmoedig nie, moet uit sy volk verwyder word; en enige persoon wat enige werk doen op dié bepaalde dag – Ek sal daardie persoon uitwis uit die geledere van sy volk. Geen werk mag julle doen nie. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon. Vir julle is dit 'n buitengewone Sabbat, en julle moet julle die aand van die negende van die maand verootmoedig. Julle moet van sononder tot sononder julle Sabbat vier.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit die Huttefees – sewe dae lank tot eer van die Here. Op die eerste dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die Here bring. Op die agtste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou en ook 'n offergawe vir die Here bring. Dit is 'n gewyde rusdag, julle mag geen gewone take verrig nie. “ ‘Dit is die feesdae van die Here wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep om offergawes aan die Here te bring: brandoffers, graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos wat daar vir elke feesdag vereis word, afgesien van die gewone Sabbatte van die Here, julle gewone gawes, al julle gelofte-offers en al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee. “ ‘Onthou net, op die vyftiende dag van die sewende maand, wanneer julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier. Die eerste dag van die fees is 'n buitengewone Sabbat en die agtste dag is 'n buitengewone Sabbat. Op die eerste dag moet julle vrugte van lowerryke bome neem saam met palmtakke, die takke van welig groeiende bome en rivierwilgers, en voor die Here julle God sewe dae lank vrolik wees. Julle moet dit as 'n fees ter ere van die Here vier sewe dae lank in die jaar. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. In die sewende maand moet julle hierdie fees vier. Julle moet in hutte woon sewe dae lank. Al die gebore Israeliete moet in Israel in hutte woon, sodat julle nageslagte kan weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die Here julle God.’ ” Moses het toe die feesdae van die Here aan die Israeliete bekend gemaak. Die Here het vir Moses gesê: “Beveel die Israeliete om vir jou suiwer geparste olyfolie te bring vir lig, sodat die lampe voortdurend brand. In die Tent van Ontmoeting, buite die voorhangsel voor die verbondsbepalings, moet Aäron die lampe regsit. Dit moet van die aand tot die oggend voortdurend voor die Here wees. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. Op die rein menora moet hy die lampe regsit. Dit moet voortdurend voor die Here wees.” “Jy moet gesifte meel vat en daarmee twaalf ringbrode bak. Elke ringbrood moet twee tiendes van 'n efa meel bevat. Sit dit in twee rye, ses in 'n ry, op die rein tafel voor die Here neer. Sit by elke ry suiwer wierook; dit sal, as simboliese offer van die brood, 'n offergawe aan die Here wees. Gereeld, Sabbatdag ná Sabbatdag, moet Aäron dit namens die Israeliete voor die Here regsit as 'n ewige verbond. Dit kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op 'n heilige plek eet, want dit is 'n besonder heilige deel wat hy altyd moet kry uit die offergawes aan die Here. ” Die seun van 'n Israelitiese vrou en 'n Egiptiese man het uit sy kampplek tussen die Israeliete ingegaan. In die kamp was daar 'n geveg tussen 'n Israelitiese man en hierdie seun van die Israelitiese vrou. Toe die seun van die Israelitiese vrou die Godsnaam laster en vervloek, het hulle hom na Moses geneem. Die seun se moeder, wie se naam Selomit was, was die dogter van Dibri, uit die stam van Dan. Hulle het hom onder bewaking gehou totdat hulle 'n beslissing van die Here sou kry. Die Here het vir Moses gesê: “ Neem die een wat die vervloeking uitgespreek het uit die kamp uit. Almal wat gehoor het, moet hulle hande op sy kop lê; dan moet die hele volksvergadering hom met klippe doodgooi. Vir die Israeliete moet jy sê, ‘Wanneer enigiemand sy God vervloek, moet hy die gevolge van sy sonde dra. Die een wat die Naam van die Here laster, moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom beslis stenig. Soos 'n gebore Israeliet moet 'n •vreemdeling ook sterf wanneer hy die Godsnaam laster. “ ‘Wanneer iemand enige mens doodslaan, moet hy beslis sterf; en wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed: 'n lewe vir 'n lewe. Wanneer iemand sy volksgenoot vermink – soos wat hy gedoen het, so moet daar aan hom gedoen word: 'n breuk vir 'n breuk, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand. Soos wat hy iemand vermink het, moet hy ook vermink word. Wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed, maar wie 'n mens doodslaan, moet sterf. Daar moet vir julle een beslissing wees. Soos dit vir die gebore Israeliet is, moet dit vir die vreemdeling wees. Ek is die Here julle God.’ ” Moses het dit vir die Israeliete gesê. Hulle het die een wat die vervloeking uitgespreek het, uit die kamp geneem en hom met klippe doodgegooi. Die Israeliete het gedoen soos wat die Here Moses beveel het. Die Here het op die berg Sinai vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee, moet die land 'n Sabbat vier vir die Here. Ses jaar moet jy jou saailand saai en ses jaar moet jy jou wingerd snoei en die opbrengs daarvan insamel, maar die sewende jaar is 'n sabbatsjaar, 'n buitengewone rusjaar. Dit moet vir die grond 'n sabbatsjaar wees tot eer van die Here. Jou saailand mag jy nie saai nie en jou wingerd mag jy nie snoei nie. Die opslag van jou graanoes mag jy nie oes nie, en die druiwe aan jou ongesnoeide wingerd mag jy nie afoes nie. Dit moet vir die land 'n buitengewone rusjaar wees. Die opbrengs van die land se Sabbat sal daar wees vir julle om te eet. Vir jou, vir jou slawe en slavinne, vir jou dagloners en jou bywoners, hulle wat by julle verblyf het, vir jou vee en die wilde diere wat in jou land is, sal die volle opbrengs van die land daar wees om te eet. “ ‘ Tel vir jou sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, sodat die tydperk van sewe Sabbatsjare vir jou nege-en-veertig jaar gee. Laat dan die •ramshoring se harde geluid oral weerklink op die tiende dag van die sewende maand. Op die •Dag van Versoening moet die ramshoring deur julle hele land weerklink. Heilig die vyftigste jaar en kondig 'n kwytskelding in die land af vir al die inwoners van die land. 'n Jubeljaar moet dit vir julle wees. Elkeen van julle moet na sy erfgrond terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer. Die vyftigste jaar moet vir julle 'n jubeljaar wees. Julle mag nie saai nie en julle mag nie die opslaggraan van die jaar oes of die ongesnoeide wingerde afoes nie, want dit is 'n jubeljaar; dit moet vir julle heilig wees. Van die saailande mag julle die opbrengs wel eet. “ ‘In hierdie jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na sy erfgrond. Wanneer julle iets aan 'n volksgenoot verkoop of uit die hand van 'n volksgenoot iets koop, mag julle mekaar nie uitbuit nie. Jy moet van jou volksgenoot koop volgens die getal jare ná die jubeljaar; ja, volgens die getal oesjare moet hy aan jou verkoop. Hoe meer die jare wat oorbly, hoe hoër sy koopprys; hoe minder die jare wat oorbly, hoe laer sy koopprys, want die getal oeste is wat hy aan jou verkoop. Julle volksgenote mag mekaar nie uitbuit nie. Jy moet ontsag hê vir jou God, want Ek, die Here, is julle God. “ ‘ Julle moet my vaste voorskrifte uitvoer en my beslissings moet julle nakom. Voer dit uit sodat julle veilig kan woon op die grond. Die grond sal sy vrug lewer en julle sal meer as genoeg eet en veilig daarop woon. En as julle vra: “Maar wat moet ons in die sewende jaar eet, as ons dan nie mag saai en ons oes insamel nie?” In die sesde jaar sal Ek oor julle my seën gebied en dit sal 'n opbrengs vir drie jaar lewer. In die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar; tot daardie jaar se oes inkom, sal julle die ou opbrengs eet. “ ‘ Die grond mag nie onherroeplik verkoop word nie, want aan My behoort die grond. Ja, julle is •vreemdelinge en bywoners by My. Met enige grond wat julle geërf het, moet julle die terugkoop van die grond toestaan. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en van sy erfgrond moes verkoop, moet sy losser wat die naaste aan hom is, kom en die verkoopte deel van sy familielid loskoop. Wanneer iemand nie 'n losser het nie en hy kan dit bekostig wanneer hy genoeg bymekaargemaak het vir die terugkoop, moet hy die jare bereken vandat dit verkoop is en die balans teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het. Hy moet dan terugkeer na sy erfgrond. As hy egter nie genoeg bymekaar kan maak om dit aan hom terug te gee nie, bly die deel wat verkoop is in die besit van die een wat dit gekoop het tot die jubeljaar. In die jubeljaar moet dit loskom en mag die man na sy erfgrond terugkeer. “ ‘Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, sal die reg van terugkoop geld totdat 'n jaar verloop het ná die verkoop daarvan. Die reg van terugkoop sal vir 'n volle jaar geld. As dit egter nie losgekoop word voordat 'n volle jaar verloop het nie, word die huis wat in die ommuurde stad is, onherroeplik oorgedra na die een wat dit gekoop het vir sy nageslag. Dit kom nie los in die jubeljaar nie. Huise in dorpies wat nie 'n muur rondom het nie, moet as deel van die saailande van die omgewing gereken word. Die reg van terugkoop moet daarvoor geld en in die jubeljaar kom dit los. “ ‘ Wat die stede van die Leviete betref: Vir die huise in die stede wat hulle erfdeel is, sal die reg van terugkoop altyd vir die Leviete geld. Wanneer een van die Leviete so 'n huis loskoop, moet die verkoopte huis loskom in die jubeljaar, al is dit in die stad waar hy 'n erfdeel het. Die huise in die stede van die Leviete is immers hulle erfdeel onder die Israeliete. Die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is vir altyd hulle erfgrond. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en by jou in die skuld raak, moet jy hom ondersteun soos 'n vreemdeling en bywoner, sodat hy by jou kan leef. Moenie van hom rente eis of uit hom wins maak nie; jy moet vir jou God ontsag hê en jou familielid moet by jou leef. Jou geld mag jy nie vir hom teen rente gee nie en van jou kos mag jy nie vir hom teen wins gee nie. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het om aan julle die land Kanaän te gee, om vir julle 'n God te wees. “ ‘ Wanneer jou broer wat by jou is, verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees. Tot die jubeljaar moet hy by jou werk, maar dan moet hy en sy kinders saam met hom, vry van jou af weggaan. Hy moet terugkeer na sy familie, na die erfgrond van sy voorouers moet hy teruggaan, want hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Hulle mag nie as slawe verkoop word nie. Jy mag hom nie aan geweld onderwerp nie. Jy moet ontsag hê vir jou God. “ ‘ Wat betref jou slawe en slavinne wat jy nodig het – uit die nasies om julle, uit hulle mag julle slawe en slavinne koop; en ook van die kinders van bywoners wat by julle verblyf het, uit hulle en hulle families wat by julle is, mag julle die kinders wat hulle in julle land verwek het, koop. Hulle is dan julle erflike eiendom. Julle mag hulle aan julle kinders ná julle nalaat as erflike besit. Julle mag hulle vir altyd slawewerk laat doen. Maar wat julle broers die Israeliete betref, die een mag nie die ander aan geweld onderwerp nie. “ ‘Wanneer 'n vreemdeling of bywoner by jou besittings bymekaarmaak en jou broer verarm by hom en verkoop homself aan 'n vreemdeling, 'n bywoner by jou, of aan 'n nasaat van 'n familie vreemdelinge, dan behou hy die reg van terugkoop nadat hy verkoop is. Een van sy broers moet hom loskoop; of sy oom of sy neef aan vaderskant moet hom loskoop; of 'n bloedverwant uit sy familie moet hom loskoop; of hy maak dalk genoeg bymekaar sodat hy homself kan loskoop. Hy moet dan, saam met die een wat hom gekoop het, die jare bereken vanaf die jaar wat hy aan hom verkoop is tot die volgende jubeljaar. Die geldwaarde van sy verkoopprys moet ooreenstem met die getal jare, asof hy in dié tyd 'n dagloner by die man was. As daar nog baie jare oor is, moet hy in ooreenstemming daarmee van die geld waarvoor hy gekoop is, terugbetaal vir sy loskoop. Maar as daar min jare oor is tot die jubeljaar, moet hy dit bereken. Ooreenkomstig daardie jare moet hy terugbetaal vir sy loskoop. Soos 'n dagloner moet hy jaar ná jaar by hom wees. Hy mag hom nie geweld aandoen terwyl julle toekyk nie. En as hy nie op hierdie manier losgekoop word nie, moet hy in die jubeljaar vry weggaan, hy en sy kinders saam met hom, want aan My behoort die Israeliete as slawe. Hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die Here julle God.’ ” “ ‘ Julle mag nie vir julle afgode maak nie; gesnede beelde en gedenkstene mag julle nie vir julle oprig en klippe met afbeeldings op mag julle nie in julle land neersit en in aanbidding voor hulle buig nie, want Ek, die Here, is julle God. My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die Here. “ ‘ As julle my vaste voorskrifte volg en my bevele nakom en dit uitvoer, sal Ek julle reën op die regte tyd vir julle gee. Die land sal sy opbrengs lewer en die bome in die veld sal hulle vrugte gee. Die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiweoes, en die druiweoes sal aanhou tot saaityd. Julle sal meer as genoeg eet en veilig woon in julle land. “ ‘ Ek sal vrede gee in die land. Julle sal gaan lê en niemand sal julle opjaag nie. Ek sal die ongediertes uit die land verwyder en 'n swaard sal nie deur julle land trek nie. Julle sal julle vyande agtervolg en deur die swaard sal hulle voor julle val. Vyf van julle sal honderd agtervolg en honderd van julle sal tienduisend agtervolg, ja, julle vyande sal deur die swaard voor julle val. Ek sal na julle omsien, julle vrugbaar maak en julle laat vermeerder. Ek sal my verbond met julle gestand doen. Julle sal nog graan van die vorige jaar oorhê om te eet, maar julle sal dit moet weggooi met die nuwe oes. “ ‘ Ek sal my •tabernakel onder julle oprig en nie 'n afkeer van julle hê nie. Ek sal tussen julle rondbeweeg: Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir My 'n volk wees. Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipteland laat wegtrek het, sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die skeie van julle jukke gebreek en julle regop laat loop. “ ‘ Maar as julle na My nie luister en al hierdie bevele nie uitvoer nie; ja, as julle my vaste voorskrifte verwerp en 'n afkeer het van my beslissings, sodat julle nie al my bevele uitvoer nie en my verbond so verbreek, dan sal Ek die volgende aan julle doen: Ek sal onverwags verskrikking oor julle bring – tering en koors wat die oë laat verdof en die lewenskrag laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs julle saad saai; julle vyande sal dit opeet. Ek sal teen julle draai, sodat julle deur julle vyande verslaan word. Julle haters sal julle vertrap. Julle sal vlug sonder dat iemand julle agtervolg. “ ‘ En as julle daarna nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewe keer te straf vir julle sondes. Ek sal julle hardnekkige verwaandheid breek: Ek sal julle hemel soos yster maak en julle grond soos brons. Julle kragte sal tevergeefs ingespan word: Julle grond sal sy opbrengs nie gee nie en die bome van julle grond sal hulle vrugte nie lewer nie. “ ‘En as julle My steeds teengaan en nie bereid is om na My te luister nie, sal Ek oor julle die slae sewe keer vermeerder ooreenkomstig julle sondes. Ek sal wilde diere onder julle loslaat; hulle sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei. Hulle sal julle so min maak dat julle paaie verlate sal wees. “ ‘En as julle, te midde daarvan, julle nie deur My wil laat teregwys nie en My teengaan, sal Ek julle ook teengaan; ja, Ek sal julle sewe keer tref oor julle sondes. Ek sal julle met die swaard tref om die skending van die verbond te wreek. En wanneer julle julle terugtrek in julle stede, sal Ek 'n epidemie onder julle loslaat, sodat julle in die hand van die vyand oorgegee word. Wanneer ek julle broodstok breek, sal tien vroue julle brood in een oond kan bak en dit volgens gewig uitdeel. Julle sal eet, maar nie versadig raak nie. “ ‘En as julle onder dié omstandighede nie na My luister nie en My bly teengaan, sal Ek julle met woede teengaan; ja, Ek sal julle dan sewe keer straf oor julle sondes. Julle sal die vleis van julle seuns eet; ook die vleis van julle dogters sal julle eet. Ek sal julle offerhoogtes verdelg en julle wierookaltare vernietig. Ek sal julle lewelose liggame op die lewelose liggame van julle afgode stapel. Ek sal 'n afkeer van julle hê. Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes. Ek sal julle geurige offers nie wil ruik nie. Ek self sal julle land verwoes sodat julle vyande wat daar woon verslae sal wees daaroor. Maar julle sal Ek onder die nasies verstrooi en die swaard agter julle ontbloot. Julle land sal 'n woesteny word en julle stede puinhope. “ ‘ Dan sal die land vergoed word vir sy Sabbatte, al die dae wat dit onbewerk lê terwyl julle in die land van julle vyande is. Ja, dan sal die land rus en vergoeding kry vir sy Sabbatte. Al die dae wat die grond onbewerk lê, sal dit die rus kry wat dit nie gehad het gedurende julle Sabbatte toe julle daarop gewoon het nie. “ ‘ Wat betref dié van julle wat oorbly, Ek sal in die lande van hulle vyande soveel vertwyfeling in hulle harte bring dat die geluid van 'n dwarrelende blaar hulle op loop sal jaag. Hulle sal vlug asof vir 'n swaard en val sonder iemand wat hulle agtervolg. Hulle sal oor mekaar struikel soos voor die swaard, maar met geen agtervolger nie! “ ‘Julle sal nie voor julle vyande kan standhou nie. Julle sal verdwyn tussen die nasies; die land van julle vyande sal julle verteer. En dié van julle wat oorbly, sal in die lande van hulle vyande wegteer oor hulle sondeskuld; hulle sal ook wegteer oor die sondeskuld van hulle voorouers wat hulle met hulle saamdra. “ ‘ Maar as hulle hulle sondeskuld en dié van hulle voorouers bely, dit wat hulle in hulle ontrou teen My begaan het deur My selfs teen te gaan, sodat Ek ook hulle teengegaan het deur hulle in die land van hulle vyande te bring; ja, as hulle onbesnede harte dan verootmoedig word en hulle boet vir hulle sondeskuld, sal Ek my verbond met Jakob onthou; ook my verbond met Isak en my verbond met Abraham sal Ek onthou, en aan die land sal Ek dink. Maar die grond moet eers van hulle verlate wees, sodat dit vir sy Sabbatte vergoed kan word terwyl dit onbewerk lê sonder hulle. Hulle sal moet boet vir hulle sondeskuld omdat hulle my beslissings verwerp en 'n afkeer van my vaste voorskrifte gehad het. “ ‘Maar selfs dan, wanneer hulle in die land van hulle vyande is, sal Ek hulle nie verwerp nie. Ek sal nie so 'n afkeer van hulle hê dat Ek hulle sal uitwis en my verbond met hulle sal verbreek nie. Ek, die Here, is immers hulle God. Ek sal tot hulle voordeel dink aan die verbond met die voorgeslagte wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipteland laat wegtrek het om vir hulle 'n God te wees. Ek is die Here. ’ ” Dit is die vaste voorskrifte, die beslissings en onderrig wat die Here by die berg Sinai deur Moses gegee het vir die verhouding tussen Hom en die Israeliete. Die Here het vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer iemand 'n buitengewone gelofte aflê, en die loskoopwaarde van persone vir die Here bereken word, moet die loskoopwaarde die volgende wees: 'n Manlike persoon van twintig tot sestig jaar se loskoopwaarde is vyftig sikkel silwer volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. As dit 'n vroulike persoon is, is die loskoopwaarde dertig sikkel. As dit iemand van vyf tot twintig jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon twintig sikkel en van 'n vroulike persoon tien sikkel. As dit iemand van een maand tot vyf jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon vyf sikkel silwer en die loskoopwaarde van 'n vroulike persoon drie sikkel silwer. As dit iemand van sestig jaar en ouer is, is die loskoopwaarde vyftien sikkel as dit 'n manlike persoon is, en tien sikkel as dit 'n vroulike persoon is. “ ‘As iemand te arm is vir die loskoopgeld, moet hy die persoon voor die priester bring. Die priester moet dan aan die persoon 'n loskoopwaarde toeken. In verhouding tot wat die een wat die gelofte afgelê het, kan bekostig, moet die priester 'n loskoopwaarde aan die persoon toeken. “ ‘ As dit gaan oor diere waarvan dele as 'n offer vir die Here aangebied kan word, sal enige dier wat iemand vir die Here gee, heilig wees. Die persoon mag dit nie vervang nie. Ja, hy mag dit nie omruil nie, nie 'n beter dier vir 'n slegter een, of 'n slegter dier vir 'n beter een nie. As hy wel 'n dier vir 'n ander omruil, dan is daardie dier en die geruilde een heilig. As dit enige •onrein dier is waarvan dele nie as 'n offer vir die Here aangebied mag word nie, moet die persoon die dier voor die priester bring. Die priester moet daaraan 'n loskoopwaarde toeken, hoog of laag. Die loskoopwaarde sal dan wees soos wat die priester dit bepaal. As die persoon dit wel wil loskoop, moet hy een vyfde by die loskoopwaarde byvoeg. “ ‘ As iemand sy huis as 'n heilige gawe aan die Here wy, moet die priester die loskoopwaarde bepaal, hoog of laag. Soos die priester die waarde bepaal, so sal dit vasstaan. As die persoon wat sy huis aan die Here gewy het, dit wil loskoop, moet hy 'n vyfde in silwer by die loskoopwaarde voeg. Dan is dit weer syne. “ ‘As iemand van die saailande van sy erfgrond aan die Here wy, moet die loskoopwaarde bepaal word volgens die saad wat daar gesaai word: vyftig sikkel silwer vir elke gomer garssaad. As die persoon sy saailand in die jubeljaar wy, staan die loskoopwaarde vas. Maar as hy sy saailand ná die jubeljaar wy, moet die priester vir hom die silwer bereken volgens die jare wat oor is tot die volgende jubeljaar. Dit word dan van die loskoopwaarde afgetrek. As die persoon wat dit gewy het, wel sy saailand wil loskoop, moet hy 'n vyfde van die silwer van die loskoopwaarde byvoeg. Dit gaan dan weer oor na hom. As hy nie die saailand loskoop nie, maar dit aan iemand anders verkoop, mag dit nie weer losgekoop word nie. Wanneer die saailand loskom in die jubeljaar, is dit 'n heilige gawe aan die Here, soos saaigrond onder die ban. Vir die priesters word dit hulle erfgrond. As iemand sy gekoopte saailand, wat nie deel is van sy geërfde saaigrond nie, aan die Here wy, moet die priester vir hom die bedrag van die loskoopwaarde bereken tot die jubeljaar toe. Die man moet die loskoopwaarde op dieselfde dag as 'n heilige gawe aan die Here gee. In die jubeljaar val die saailand weer terug aan hom van wie hy dit gekoop het, aan hom vir wie die grond erfgrond was. “ ‘ Elke loskoopwaarde moet volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld, bereken word; twintig gera is 'n sikkel. “ ‘ Onthou net, wat betref 'n eersgeborene onder die diere wat reeds as eersgeborene aan die Here behoort – iemand mag dit nie wy nie. Of dit nou 'n bees of 'n stuk kleinvee is, dit behoort aan die Here. Maar as dit deel van die onrein diere is, mag die persoon dit terugkoop teen loskoopwaarde. Hy moet 'n vyfde byvoeg. As hy dit nie loskoop nie, moet dit teen loskoopwaarde verkoop word. “ ‘ Onthou net, wat betref enigiets onder die ban wat iemand volledig aan die Here gewy het van alles wat aan hom behoort, of dit nou 'n mens, 'n dier of 'n saailand van sy erfgrond is – dit mag nie verkoop word nie, en dit mag nie losgekoop word nie. Enigiets onder die ban is 'n besonder heilige gawe aan die Here. Elke persoon wat onder die ban is, elke persoon onder die mense wat volledig aan die Here gewy is, mag nie vrygekoop word nie; so 'n persoon moet beslis sterf. “ ‘ Enige tiende wat die grond lewer, uit die saad van die grond of uit die vrugte van bome, behoort aan die Here; dit is 'n heilige gawe aan die Here. As iemand wel van sy tiende wil loskoop, moet hy 'n vyfde daarby voeg. En wat al die tiendes van beeste en kleinvee betref, elke tiende een wat onder die herderstaf deurgaan, is 'n heilige gawe aan die Here. Die eienaar mag nie tussen goeies vir 'n slegte soek nie en hy mag nie diere omruil nie. As hy dit wel omruil, is daardie dier reeds heilig en sal die geruilde een ook heilig wees. Dit mag nie losgekoop word nie.’ ” Dit is die gebooie wat die Here Moses by die berg Sinai gegee het om aan die Israeliete oor te dra. Die Here het met Moses gepraat in die Tent van Ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand in die tweede jaar ná hulle uittog uit Egipteland. Hy het gesê: “ Hou 'n hoofdelike telling van die hele volksvergadering van die Israeliete volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name van elke manlike persoon, kop vir kop, van twintig jaar en ouer – elke weerbare man in Israel. Jy en Aäron moet hulle inskryf volgens hulle leërafdelings. Saam met julle moet daar iemand wees, 'n man uit elke stam, iemand wat die hoof is van sy familie. “Dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: “Elisur, seun van Sedeür, vir Ruben; Selumiël, seun van Suri-Saddai, vir Simeon; Nagson, seun van Amminadab, vir Juda; Netanel, seun van Suar, vir Issaskar; Eliab, seun van Gelon, vir Sebulon; vir die nageslag van Josef: Elisama, seun van Ammihud, vir Efraim; en Gamliël, seun van Pedasur, vir Manasse; Abidan, seun van Gidoni, vir Benjamin; Agiëser, seun van Ammi-Saddai, vir Dan; Pagiël, seun van Ogran, vir Aser; Eljasaf, seun van Deüel, vir Gad; Agira, seun van Enan, vir Naftali.” Hierdie manne is deur die volksvergadering na vore geroep as leiers van die stamme van hulle voorvaders; hulle is die stamhoofde van Israel. Moses en Aäron het hierdie manne wat by die naam aangewys is, geneem en op die eerste dag van die tweede maand die hele volksvergadering bymekaar laat kom. Hulle het toe geslagsregisters oor hulle familiegroepe, volgens hulle families, opgestel met die volle name van dié wat twintig jaar en ouer was, kop vir kop, soos die Here Moses beveel het. Moses het hulle in die Sinaiwoestyn ingeskryf. Die nageslag van Ruben, eersgeborene van Israel, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, kop vir kop, elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elke weerbare man was: 46 500 wat ingeskryf is vir die stam van Ruben. Die nageslag van Simeon, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, wat ingeskryf is met volle name, kop vir kop, elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elke weerbare man: 59 300 wat ingeskryf is vir die stam van Simeon. Die nageslag van Gad, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 45 650 wat ingeskryf is vir die stam van Gad. Die nageslag van Juda, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 74 600 wat ingeskryf is vir die stam van Juda. Die nageslag van Issaskar, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 54 400 wat ingeskryf is vir die stam van Issaskar. Die nageslag van Sebulon, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 57 400 wat ingeskryf is vir die stam van Sebulon. Die nageslag van Josef: Die nageslag van Efraim, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 40 500 wat ingeskryf is vir die stam van Efraim. Die nageslag van Manasse, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 32 200 wat ingeskryf is vir die stam van Manasse. Die nageslag van Benjamin, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 35 400 wat ingeskryf is vir die stam van Benjamin. Die nageslag van Dan, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 62 700 wat ingeskryf is vir die stam van Dan. Die nageslag van Aser, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 41 500 wat ingeskryf is vir die stam van Aser. Die nageslag van Naftali, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 53 400 wat ingeskryf is vir die stam van Naftali. Dit is diegene wat ingeskryf is wat Moses, Aäron en die leiers van Israel, die twaalf manne, in die register ingeskryf het. Hulle het elkeen sy families verteenwoordig. Al dié wat ingeskryf is van die Israeliete, volgens hulle families, elke weerbare man in Israel van twintig jaar en ouer, hulle almal wat ingeskryf is, was 603 550. Die Leviete is volgens afstamming ingedeel. Hulle is nie saam met die ander ingeskryf nie, want die Here het vir Moses gesê: “Net die stam van Levi moet jy nie saam met die Israeliete inskryf of tel nie. Jy moet self die Leviete aanstel oor die •tabernakel met die Getuienis, en oor al die gereedskap en toebehore daarvan. Hulle moet die tabernakel en al die gereedskap dra, en hulle moet daarna omsien. Hulle moet rondom die tabernakel kamp opslaan. Wanneer die tabernakel verskuif word, moet die Leviete dit afbreek, en wanneer die tabernakel weer opgeslaan word, moet die Leviete dit oprig. 'n Onbevoegde persoon wat naby kom, moet doodgemaak word. “ Die Israeliete moet elkeen op sy kampplek en elkeen langs sy eenheid, volgens hulle leërafdelings, kamp opslaan, maar die Leviete moet rondom die tabernakel met die Getuienis kamp opslaan, sodat daar nie 'n oordeel uit toorn oor die volksvergadering van die Israeliete kom nie. Die Leviete moet die verpligtinge nakom by die tabernakel met die Getuienis.” Die Israeliete het dit toe gedoen – alles wat die Here Moses beveel het, het hulle net so gedoen. Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Die Israeliete moet elkeen by sy eenheid, by die vaandels van hulle familie, kamp opslaan. Hulle moet langs mekaar, op 'n afstand, rondom die Tent van Ontmoeting kamp opslaan. “ Dié wat kamp opslaan aan die oostekant, aan die kant waar die son opkom, moet wees: “Die eenheid van Juda se kamp volgens hulle leërafdelings, met Nagson, seun van Amminadab, as leier van die nageslag van Juda, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 74 600. Dié wat langs hulle kamp opslaan, is die stam van Issaskar met Netanel, seun van Suar, as leier van die nageslag van Issaskar, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 54 400. Daarna die stam van Sebulon met Eliab, seun van Gelon, as leier van die nageslag van Sebulon, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 57 400. “Al dié wat ingeskryf is van die kamp van Juda, volgens hulle leërafdelings, is 186 400. Hulle moet eerste kamp opbreek. “Die eenheid van Ruben se kamp is, volgens hulle leërafdelings, aan die suidekant met Elisur, seun van Sedeür, as leier van die nageslag van Ruben, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 46 500. Dié wat langs hulle kamp opslaan, is die stam van Simeon met Selumiël, seun van Suri-Saddai, as leier van die nageslag van Simeon, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 59 300. Daarna die stam van Gad met Eljasaf, seun van Deüel as leier van die nageslag van Gad, met sy leër, dié wat ingeskryf is, is 45 650. “Al dié wat ingeskryf is van die kamp van Ruben, volgens hulle leërafdelings, is 151 450. Hulle moet tweede kamp opbreek. “Dan moet die Tent van Ontmoeting, die kamp van die Leviete wat in die middel van die kampe is, verskuif. Soos hulle kamp opslaan, so moet hulle ook kamp opbreek, elkeen op sy plek, volgens hulle eenhede. “Die eenheid van Efraim se kamp is, volgens hulle leërafdelings, aan die westekant, met Elisama, seun van Ammihud, as leier van die nageslag van Efraim, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 40 500. Langs hulle is die stam van Manasse met Gamliël, seun van Pedasur, as leier van die nageslag van Manasse, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 32 200. Daarna die stam van Benjamin. Die leier van die nageslag van Benjamin is Abidan, seun van Gidoni, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 35 400. “Al dié wat ingeskryf is van die kamp van Efraim, volgens hulle leërafdelings, is 108 100. Hulle moet derde kamp opbreek. “Die eenheid van Dan se kamp is, volgens hulle leërafdelings, aan die noordekant met Agiëser, seun van Ammi-Saddai, as leier van die nageslag van Dan, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 62 700. Dié wat langs hulle kamp opslaan, is die stam van Aser met Pagiël, seun van Ogran, as leier van die nageslag van Aser, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 41 500. Daarna die stam van Naftali met Agira, seun van Enan, as leier van die nageslag van Naftali, met sy leër, dié wat ingeskryf is: 53 400. “Al dié wat ingeskryf is van die kamp van Dan, is 157 600. Hulle moet laaste kamp opbreek volgens hulle eenhede.” Dit was die Israeliete wat ingeskryf is volgens hulle families. Al dié wat ingeskryf is van die kampe, volgens hulle leërafdelings, was 603 550. Maar die Leviete is nie saam met die Israeliete ingeskryf nie, net soos die Here Moses beveel het. Die Israeliete het presies gedoen wat die Here Moses beveel het. So het hulle kamp opgeslaan volgens hulle eenhede, en so het hulle kamp opgebreek; almal volgens hulle familiegroepe, langs hulle families. Hier volg die geslagsregisters van Aäron en Moses. Die tyd toe die Here met Moses op die berg Sinai gepraat het, was dit die name van Aäron se seuns: Nadab, die eersgeborene, Abihu, Eleasar en Itamar. Dit was die name van Aäron se seuns, die priesters wat gesalf is, wat Moses gewy het om as priesters te dien. Maar Nadab en Abihu het voor die Here gesterf, toe hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring het. Hulle het geen seuns gehad nie, en Eleasar en Itamar het onder toesig van hulle vader, Aäron, as priesters opgetree. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Laat die stam van Levi nader kom, laat hulle plek inneem voor die priester Aäron. Hulle moet hom bystaan; hulle moet sy verpligtinge en die verpligtinge van die hele volksvergadering voor die Tent van Ontmoeting help nakom deur diens te doen in die tabernakel. Hulle moet toesig hou oor al die toerusting van die Tent van Ontmoeting, en die verpligtinge van die Israeliete help nakom deur diens te doen in die tabernakel. “ Jy moet die Leviete tot beskikking stel van Aäron en sy seuns. Hulle is volledig tot sy beskikking namens die Israeliete. Net aan Aäron en sy seuns moet jy dit opdra om die priesterdiens waar te neem. 'n Onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.” Die Here het met Moses gepraat: “ Wat My betref, kyk, Ek het die Leviete tussen die Israeliete uitgehaal in die plek van al die eersgeborenes, die eerstelinge van die moederskoot, onder die Israeliete. Die Leviete behoort aan My omdat al die eersgeborenes aan My behoort. Toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig: Die eersgeborenes van mense sowel as diere behoort aan My. Ek is die Here. ” Die Here het in die Sinaiwoestyn met Moses gepraat en gesê: “Skryf die Leviete in volgens hulle families, volgens hulle familiegroepe. Al die manlike persone van een maand en ouer moet jy inskryf.” Moses het hulle op bevel van die Here ingeskryf, soos hy beveel is. Dit was die nageslag van Levi met hulle name, Gerson, Kehat en Merari: Dit is die name van die nageslag van Gerson; volgens hulle familiegroepe was dit Libni en Simi. Die nageslag van Kehat was, volgens hulle familiegroepe, Amram en Jishar, Hebron en Ussiël. Die nageslag van Merari was, volgens hulle familiegroepe, Magli en Musi. Hulle was die familiegroepe van die Leviete, volgens hulle families. By Gerson hoort die familiegroep wat van Libni afstam en die familiegroep wat van Simi afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Gerson afstam. Wat betref dié wat ingeskryf is: Die volle getal van almal wat manlik was, van 'n maand en ouer, dié wat ingeskryf is, was 7 500. Die familiegroepe wat van Gerson afstam, het agter die tabernakel kamp opgeslaan, aan die westekant. Die leier van die Gerson-familie was Eljasaf, seun van Lael. Die verpligtinge van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting was die tabernakel en die boseil, sy dekkleed en die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, saam met die voorhof se afskorting en sy toue – al die werk daaraan. By Kehat hoort die familiegroep wat van Amram afstam, die familiegroep wat van Jishar afstam, die familiegroep wat van Hebron afstam en die familiegroep wat van Ussiël afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Kehat afstam. Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 8 600. Hulle moes die verpligtinge in die heiligdom nakom. Die familiegroepe van die nageslag van Kehat het kamp opgeslaan langs die tabernakel, aan die suidekant. Die leier van die familiegroepe wat van Kehat afstam, was Elisafan, seun van Ussiël. Hulle verpligtinge was al die werk verbonde aan die ark, die tafel, die menora, die altare en die toebehore van die heiligdom waarmee hulle take verrig, asook die afskorting. Die hoofleier van die Leviete was Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy was in bevel van dié wat die verpligtinge in die heiligdom moes nakom. By Merari hoort die familiegroep wat van Magli afstam en die familiegroep wat van Musi afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Merari afgestam het. Wat betref dié wat ingeskryf is: Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 6 200. Die leier van die familiegroepe wat van Merari afstam, was Suriël, seun van Abigajil. Hulle het langs die tabernakel tent opgeslaan, aan die noordekant. Die verantwoordelikheid wat aan die nageslag van Merari opgedra is, was die tabernakel se houtraamwerk, die dwarshoute, tentpale en voetstukke, en al die toebehore, al die werk daaraan verbonde, ook die tentpale van die voorhof rondom, hulle voetstukke, penne en toue. Die groep wat voor die tabernakel, aan die oostekant, waar die son opkom, voor die Tent van Ontmoeting, moes kamp opslaan, was Moses, Aäron en sy nageslag. Hulle moes die verpligtinge in die heiligdom nakom, die verpligtinge van die Israeliete. 'n Onbevoegde persoon wat daar indring, moes doodgemaak word. Al die ingeskrewe Leviete, wat Moses en Aäron op bevel van die Here ingeskryf het, volgens hulle familiegroepe, elke manlike persoon van 'n maand en ouer, was 22 000. Die Here het vir Moses gesê: “Skryf elke manlike eersgeborene van die Israeliete van 'n maand en ouer in. Neem hulle volle name op in die lys. Neem die Leviete vir My – Ek is die Here – in die plek van al die eersgeborenes van die Israeliete; en neem die diere van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die diere van die Israeliete.” Moses het toe, soos die Here hom beveel het, al die eersgeborenes onder die Israeliete ingeskryf. Al die manlike eersgeborenes, met volle name, van 'n maand en ouer, was volgens hulle inskrywing 22 273. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete, en ook die Leviete se vee in die plek van hulle vee. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here. Vir die loskoop van 273 van Israelitiese eersgeborenes, wat meer as die Leviete is, moet jy vyf sikkel per kop invorder en dit bereken volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Die sikkel is twintig gera werd. Jy moet die geld vir Aäron en sy seuns gee as losprys vir die eersgeborenes wat meer is as hulle.” Moses het die geld vir die losprys van die Israelitiese eersgeborenes, wat meer was as dié wat deur die Leviete losgekoop is, in ontvangs geneem. Namens die eersgeborenes van die Israeliete het hy die geld ontvang. Dit was 1 365 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Moses het die losprys vir Aäron en sy seuns gegee in opdrag van die Here, soos die Here Moses beveel het. Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Hou onder die Leviete 'n hoofdelike telling van die nageslag van Kehat, volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. “ Die dienswerk van die nageslag van Kehat in die Tent van Ontmoeting in verband met die allerheiligste voorwerpe is soos volg: Wanneer die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns ingaan en die voorhangsel wat as afskorting dien, afhaal en die ark met die Getuienis daarmee bedek. Hulle moet 'n sagte leerbedekking daaroor sit en 'n doek wat heeltemal pers is, daaroor gooi. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Oor die tafel vir die vertoonbrode moet hulle ook 'n pers doek gooi. Daarop moet hulle die skottels, die bakke, die komme en die bekers vir die •drankoffers neersit. Die brood wat deurentyd op die tafel is, moet ook daar wees. Daaroor moet hulle dan 'n karmosynrooi doek gooi en dit met 'n dekkleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet 'n pers doek vat en dit gooi oor die menora wat lig moet verskaf, saam met sy lampe, die snuiters, die bakkies en al die oliehouers waarmee hulle by die menora take verrig. Hulle moet die menora met al sy toebehore op 'n kleed van sagte leer sit en dit op die draagbaar neerlê. Oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek gooi en dit met 'n kleed van sagte leer toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. Hulle moet al die gereedskap neem waarmee hulle in die heiligdom take verrig, dit op 'n pers doek sit, met 'n kleed van sagte leer toemaak en op die draagbaar neerlê. Hulle moet die altaar skoonvee van vetterige as en 'n purperrooi doek daaroor gooi. Hulle moet al die gereedskap waarmee hulle by die altaar take verrig, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppies en offerbakke – al die gereedskap vir die altaar. Dan moet hulle 'n sagte leerbedekking daaroor gooi. Daarna moet hulle die draaghoute insteek. Aäron en sy seuns moet die heiligdom en al die heilige voorwerpe toemaak wanneer die kamp verskuif. Eers daarna kan die nageslag van Kehat kom om dit te dra. Hulle mag nie aan iets heiligs raak nie, anders sterf hulle. Dit is dan die voorwerpe in die Tent van Ontmoeting wat die nageslag van Kehat moet dra. “Die olie vir die lig, die geurige reukwerk, die gereelde •graanoffer en die salfolie staan onder die beheer van Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy hou ook toesig oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor sowel die heiligdom as sy gereedskap.” Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Moenie toelaat dat die familiegroepe van die Kehat-tak van die Leviete afgesny word nie. Dit is wat julle vir hulle moet doen, sodat hulle kan leef en nie sterf wanneer hulle die besonder heilige voorwerpe nader nie: Aäron en sy seuns moet in die tabernakel ingaan en hulle aanstel, elkeen oor sy taak en by sy drawerk. Hulle mag egter nie daar ingaan om, terwyl dit toegegooi word, na die heilige voorwerpe te kyk nie, anders sterf hulle.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Hou 'n hoofdelike telling ook van die nageslag van Gerson volgens hulle families, volgens hulle familiegroepe, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud. Skryf hulle in, elkeen wat ingaan om diens te doen om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. “ Dit is die taak wat die familiegroepe wat van Gerson afstam, moet uitvoer by die drawerk: Hulle moet die tabernakel se tentdoeke en die Tent van Ontmoeting dra, die dekkleed en die dekkleed van sagte leer wat bo-oor kom, die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, en die afskorting by die ingang van die poort na die voorhof, asook die toue daarvan en al die voorwerpe wat deel uitmaak van hulle taak; ja, alles wat daarmee gedoen moet word, is hulle taak. Volgens die bevele van Aäron en sy seuns moet elke taak van die nageslag van Gerson uitgevoer word. Dit geld vir al hulle drawerk en al hulle take. Julle moet vir hulle by die naam al hulle drawerk aanwys. Dit is die taak van die familiegroepe van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting. Hulle verpligtinge staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.” “ Wat die nageslag van Merari betref – volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, moet jy hulle inskryf. Van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om by die Tent van Ontmoeting 'n taak te verrig, moet jy inskryf. Die drawerk wat hulle verplig is om te doen, al hulle take by die Tent van Ontmoeting, sluit die volgende in: die houtraamwerk van die tabernakel, sy dwarshoute, pilare en voetstukke, die pilare rondom die voorhof, die voetstukke, penne, toue en al die bypassende gereedskap, alles wat deel uitmaak van hulle taak. Julle moet vir hulle by die naam die voorwerpe wat hulle verplig is om te dra, aanwys. Dit is die taak van die familiegroepe uit die nageslag van Merari. Al hulle take by die Tent van Ontmoeting staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.” Moses en Aäron en die leiers van die volksvergadering het die nageslag van Kehat ingeskryf volgens hulle familiegroepe en families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir 'n diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting. Dié wat ingeskryf is volgens hulle familiegroepe, was 2 750. Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe wat van Kehat afstam, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here deur die diens van Moses. Dié wat ingeskryf is van die nageslag van Gerson, volgens hulle familiegroepe en families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting, ingeskryf volgens familiegroepe en families, was 2 630. Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Gerson, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het, wat Moses en Aäron in opdrag van die Here ingeskryf het. Dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Merari, ingeskryf volgens hulle familiegroepe en families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan vir diens om 'n taak te verrig in die Tent van Ontmoeting – dié wat ingeskryf is volgens familiegroepe, was 3 200. Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Merari. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here by monde van Moses. Al dié wat ingeskryf is, die Leviete wat Moses en Aäron en die leiers van Israel ingeskryf het volgens hulle familiegroepe en families, van dertig jaar en ouer, tot vyftig jaar oud, elkeen wat ingaan om 'n taak te verrig en drawerk te doen in die Tent van Ontmoeting – dié wat ingeskryf is, was 8 580. Volgens die bevel van die Here by monde van Moses, is hulle oor hulle taak en drawerk opdragte gegee, elkeen wat Moses ingeskryf het soos die Here hom beveel het. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Gee die Israeliete opdrag om elkeen wat 'n velsiekte het en elkeen wat 'n afskeiding het, uit die kamp te stuur, ook elkeen wat onrein is omdat hy aan 'n lyk geraak het. Mans sowel as vroue, moet julle uitstuur. Na die buitekant van die kamp moet julle hulle stuur, sodat hulle nie hulle kamp, waar Ek in hulle midde woon, verontreinig nie.” Die Israeliete het toe so gemaak. Hulle het hulle uit die kamp gestuur. Net soos wat die Here vir Moses beveel het, so het die Israeliete gedoen. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Sê vir die Israeliete, ‘Wanneer 'n man of 'n vrou enige sonde begaan wat 'n mens kan doen, sodat daar ontrou teenoor die Here gepleeg word, is daardie persoon skuldig. Hulle moet hulle sonde wat hulle gedoen het, bely. Die persoon moet ten volle vergoeding gee vir wat hy verkeerd gedoen het en 'n vyfde daarvan byvoeg. Hy moet dit gee aan wie hy ook al benadeel het. As iemand egter geen naaste familielid het aan wie die skuld vergoed kan word nie, val die verskuldigde bedrag terug aan die Here. Dit is tot voordeel van die priester, bo en behalwe die ram vir versoening waarmee die priester vir die persoon versoening moet doen. “ ‘Enige •wydingsgeskenk uit al die •heilige gawes van die Israeliete wat hulle na die priester bring, sal syne wees. Elkeen se heilige gawes is sy eie, maar wanneer iemand iets vir die priester gee, behoort dit aan die priester.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘As enigiemand se vrou op 'n dwaalspoor raak en aan hom ontrou is deurdat 'n ander man met haar gemeenskap het, maar haar man nie daarvan bewus is nie – want sy het haarself in die geheim verontreinig – en daar geen getuie teen haar is en sy ook nie betrap is nie; maar 'n gees van wantroue pak haar man beet en hy koester agterdog teenoor sy vrou as sy haarself verontreinig het; of ook as 'n gees van wantroue hom beetpak en hy koester agterdog teenoor sy vrou alhoewel sy haarself nie verontreinig het nie, dan moet die man sy vrou na die priester neem. Hy moet die vereiste offer namens haar saamneem: 'n tiende van 'n efa garsmeel. Hy mag geen olyfolie daaroor uitgiet en geen wierook daarop neersit nie, want dit is 'n •graanoffer vir agterdog, 'n graanoffer van herinnering wat aan skuld herinner. “ ‘Die priester moet haar naderbring en haar in die teenwoordigheid van die Here laat staan. Die priester moet die heilige water wat in 'n kleipot is, neem; ook van die stof op die vloer van die •tabernakel moet hy neem en in die water gooi. Die priester moet dan die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan. Hy moet haar hare losmaak en die graanoffer van herinnering op haar handpalms sit – dit is die graanoffer vir agterdog – terwyl die priester die water van bitterheid wat 'n vloek bring, in sy hand hou. Dan moet die priester haar onder eed plaas en vir die vrou sê: “As 'n ander man nie by jou geslaap het nie, en as jy nie in •onreinheid op 'n dwaalspoor geraak het terwyl jy onder die gesag van jou man was nie, wees dan vry van hierdie water van bitterheid wat 'n vloek bring. Maar jy, as jy op 'n dwaalspoor geraak het terwyl jy onder die gesag van jou man was, en as jy jouself verontreinig het, en iemand behalwe jou eie man met jou gemeenskap gehad het” – en hier moet die priester dan die vrou die eed van vervloeking laat sweer deur vir haar te sê – “mag die Here jou 'n voorbeeld van vervloeking en verwensing maak onder jou volk wanneer Hy beskik dat jou heup krimp en jou maag opswel. En mag hierdie water wat die vloek bring, in jou ingewande ingaan sodat jou maag opswel en jou heup krimp.” Die vrou moet dan sê: “•Amen, amen.” “ ‘Daarna moet die priester hierdie vervloekings in 'n •boekrol skryf en dit in die water van bitterheid uitwis. Hy moet die vrou die water van bitterheid wat die vloek bring, laat drink; dit sal in haar ingaan tot bitterheid. Die priester moet dan die graanoffer vir agterdog uit die vrou se hand neem, dit voor die Here aanbied en dit na die altaar bring. Dan moet die priester 'n handvol van die graanoffer, die simboliese offer, neem, en dit op die altaar verbrand. Daarna moet hy die vrou die water laat drink. Nadat hy haar die water laat drink het, sal dit soos volg verloop: As sy haarself verontreinig het en 'n daad van ontrou teenoor haar man gepleeg het, sal die water van bitterheid wat die vloek bring, in haar ingaan; haar maag sal opswel en haar heup sal krimp. Die vrou sal dan dien as voorbeeld van vervloeking onder haar volk. Maar as die vrou haarself nie verontreinig het nie en sy rein is, sal sy vry wees van skuld en bevrug kan raak. “ ‘Dit is die voorskrif vir agterdog, wanneer 'n vrou op 'n dwaalspoor raak en sy haarself verontreinig terwyl sy onder die gesag van haar man is; of in die geval van 'n man wanneer 'n gees van wantroue hom beetpak en hy agterdog koester teenoor sy vrou. Hy moet dan die vrou in die Here se teenwoordigheid laat staan, en die priester sal met haar handel volgens hierdie hele voorskrif. Die man sal vry wees van skuld, maar daardie vrou sal haar skuld moet dra.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer 'n man of vrou 'n buitengewone gelofte aflê, die gelofte van 'n •nasireër om hulle aan die Here te wy, moet hy hom van wyn en sterk drank weerhou. Druiweasyn en asyn van sterk drank mag so iemand nie drink nie. Geen druiwesap mag hy drink nie, en druiwe, vars of droog, mag hy nie eet nie. Vir die volle tydperk van sy toewyding mag hy niks eet wat van die druiwestok verkry word nie, van pit tot skil. “ ‘Vir die volle tydperk wat sy gelofte van toewyding geld, mag 'n skeermes nie oor sy kop gaan nie. Totdat die tydperk waarin hy hom aan die Here toewy, verby is, moet hy heilig wees en die onversorgde hare op sy kop lank laat word. “ ‘ Vir die volle tydperk van sy toewyding aan die Here mag hy nie naby 'n dooie kom nie. Selfs in die geval van sy vader, moeder, broer of suster mag hy homself nie met hulle verontreinig as hulle sterf nie, want die teken van toewyding aan sy God, is op sy kop. Vir die volle tydperk van sy toewyding is hy heilig vir die Here. “ ‘ Maar wanneer iemand by hom heel onverwags sterf, en hy sy gewyde hare verontreinig, moet hy sy hare afskeer op die dag wanneer hy rein word; op die sewende dag moet hy dit afskeer. Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester bring by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Die priester moet die een as 'n •reinigingsoffer en die ander as 'n •brandoffer bring en so vir hom versoening doen vir die oortreding weens die dooie. Daardie dag nog moet hy sy hare heilig en die tydperk van sy toewyding opnuut aan die Here opdra. Hy moet 'n jaaroud ramlam as •hersteloffer na die priester bring. Die aanvanklike tydperk verval omdat sy toewyding •onrein geword het. “ ‘ Dit is die voorskrifte vir die nasireër: Op die dag wanneer die tydperk van sy toewyding verby is, moet hy na die ingang van die Tent van Ontmoeting gebring word. Hy moet sy offer vir die Here naderbring: een jaaroud ramlam sonder gebrek as •brandoffer, een jaaroud ooilam sonder gebrek as reinigingsoffer en een ram sonder gebrek as •maaltydoffer, asook 'n mandjie met ongesuurde brood van gesifte meel, ringbrode, klam gemaak met olyfolie, en platbrode, gesmeer met olyfolie, met die bypassende •graan- en •drankoffers. Die priester moet dit in die teenwoordigheid van die Here bring en offer as die persoon se reinigingsoffer en brandoffer. Die ram moet hy as maaltydoffer vir die Here bring saam met die mandjie ongesuurde brood. Die priester offer ook die persoon se graan- en drankoffer. Die nasireër moet dan by die ingang van die Tent van Ontmoeting sy gewyde hare afskeer. Hy moet die gewyde hare van sy kop neem en dit in die vuur onder die maaltydoffer gooi. Die priester moet die ram se gekookte blad neem en ook een ongesuurde ringbrood en een ongesuurde platbrood uit die mandjie haal. Hy moet dit dan op die handpalms van die nasireër sit nadat hy sy gewyde hare afgeskeer het. Daarna moet die priester dit voor die Here as simboliese offer bring. Dit is 'n heilige gawe wat die priester toekom, saam met die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die boud, wat die •wydingsgeskenk is. Daarna kan die nasireër wyn drink. “ ‘Dit is die voorskrifte vir die nasireër wat hy, op grond van sy toewyding, as 'n offer aan die Here moet beloof, naas dit wat hy verder kan bekostig. Bo en behalwe die voorskrifte wat geld vir sy toewyding, moet hy presies handel volgens sy gelofte wat hy aflê.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘So moet julle die Israeliete seën; sê vir hulle: “ ‘ Mag die Here jou seën en jou beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.’ ” “So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën.” Op die dag toe Moses die •tabernakel klaar opgerig het, het hy dit gesalf en dit met al die gereedskap, asook die altaar met al die gereedskap, geheilig. Toe hy dit gesalf en geheilig het, het die leiers van Israel, die hoofde van hulle families – dit is die leiers van die stamme, hulle wat met die inskrywing bystand verleen het – offergawes aangebied. Hulle het hulle offergawes gebring na die Here se teenwoordigheid: ses waens met seile oor en twaalf beeste, 'n wa namens twee leiers en 'n bees namens elkeen. Hulle het dit aangebied voor die tabernakel. Die Here het vir Moses gesê: “Aanvaar dit van hulle sodat dit gebruik kan word vir die werk by die Tent van Ontmoeting. Jy moet dit vir die Leviete gee, vir elkeen in ooreenstemming met sy taak.” Moses het die waens en die beeste geneem en dit vir die Leviete gegee. Twee waens en vier beeste het hy vir die nageslag van Gerson gegee, in ooreenstemming met hulle taak. Vier waens en agt beeste het hy vir die nageslag van Merari, onder beheer van Itamar, seun van die priester Aäron, gegee, in ooreenstemming met hulle taak. Maar vir die nageslag van Kehat het hy niks gegee nie, want die hantering van die heilige voorwerpe was hulle verantwoordelikheid. Hulle moes dit op hulle skouers dra. Die leiers het offergawes vir die wyding van die altaar aangebied op die dag toe dit gesalf is. Toe die leiers hulle offergawes voor die altaar aanbied, het die Here vir Moses gesê: “Laat een leier per dag sy offergawe vir die wyding van die altaar aanbied.” Die een wat sy offergawe op die eerste dag aangebied het, was Nagson, seun van Amminadab, uit die stam van Juda. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n •graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as •brandoffer; 1 bokram as •reinigingsoffer; as •maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Nagson, seun van Amminadab. Op die tweede dag het Netanel, seun van Suar, leier van Issaskar sy offergawe aangebied. Hy het die volgende as sy offergawe aangebied: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Netanel, seun van Suar. Op die derde dag was dit die leier van die nageslag van Sebulon, Eliab, seun van Gelon. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Eliab, seun van Gelon. Op die vierde dag was dit die leier van die nageslag van Ruben, Elisur, seun van Sedeür. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Elisur, seun van Sedeür. Op die vyfde dag was dit die leier van die nageslag van Simeon, Selumiël, seun van Suri-Saddai. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Selumiël, seun van Suri-Saddai. Op die sesde dag was dit die leier van die nageslag van Gad, Eljasaf, seun van Deüel. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Eljasaf, seun van Deüel. Op die sewende dag was dit die leier van die nageslag van Efraim, Elisama, seun van Ammihud. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Elisama, seun van Ammihud. Op die agtste dag was dit die leier van die nageslag van Manasse, Gamliël, seun van Pedasur. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Gamliël, seun van Pedasur. Op die negende dag was dit die leier van die nageslag van Benjamin, Abidan, seun van Gidoni. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Abidan, seun van Gidoni. Op die tiende dag was dit die leier van die nageslag van Dan, Agiëser, seun van Ammi-Saddai. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Agiëser, seun van Ammi-Saddai. Op die elfde dag was dit die leier van die nageslag van Aser, Pagiël, seun van Ogran. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Pagiël, seun van Ogran. Op die twaalfde dag was dit die leier van die nageslag van Naftali, Agira, seun van Enan. Sy offergawe was: 1 silwerskottel van 130 sikkel, 1 silwer-offerbak van 70 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld – albei was vol gesifte meel, klam gemaak met olyfolie, as 'n graanoffer; 1 bak van 10 sikkel goud vol reukwerk; 1 jong bul, 1 ram, 1 jaaroud ramlam as brandoffer; 1 bokram as reinigingsoffer; as maaltydoffer, 2 beeste, 5 ramme, 5 bokramme en 5 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawe van Agira, seun van Enan. Dit was, van die kant van die leiers van Israel, offergawes vir die wyding van die altaar die dag toe dit gesalf is: 12 silwerskottels, 12 silwer-offerbakke, 12 goue bakke. Elke silwerskottel was 130 sikkel silwer en elke silwer-offerbak 70 sikkel silwer; al die silwer van die gereedskap was saam 2 400 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Daar was 12 goue bakke vol reukwerk, elke bak was 10 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Al die goud van die bakke was saam 120 sikkel. Al die vee vir die brandoffer was 12 bulle, 12 ramme, 12 jaaroud ramlammers, met die bypassende graanoffer. Daar was 12 bokramme vir die reinigingsoffer. Al die vee vir die maaltydoffer was 24 bulle, 60 ramme, 60 bokramme, en 60 jaaroud ramlammers. Dit was die offergawes vir die wyding van die altaar nadat dit gesalf is. Wanneer Moses in die Tent van Ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem gehoor wat met hom praat vanaf die versoendeksel op die ark met die Getuienis, van tussen die twee gerubs af. So het die Here met hom gepraat. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met Aäron en sê vir hom, ‘Wanneer jy die lampe op die menora sit, moet die sewe lampe na die voorkant van die menora lig gee.’ ” Aäron het dit toe so gedoen; hy het die lampe so opgesit dat dit na die voorkant van die menora lig gee, net soos die Here Moses beveel het. Die menora is so gemaak: Dit was uit een stuk goud geslaan. Vanaf die basis tot by die blomversiering was dit pletwerk. Volgens die voorbeeld wat die Here Moses gewys het, presies so het hy die menora gemaak. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Verwyder die Leviete uit die midde van die Israeliete en reinig hulle. So moet jy met hulle maak om hulle te reinig: Sprinkel reinigingswater op hulle. Hulle moet hulle hele liggaam skoon skeer en hulle klere was en hulleself so reinig. Dan moet hulle 'n jong bul neem, met die bypassende offer van gesifte meel, klam gemaak met olyfolie. Daarby moet jy 'n tweede jong bul as •reinigingsoffer neem. Jy moet die Leviete voor die Tent van Ontmoeting laat nader kom en die hele volksvergadering van die Israeliete daar bymekaar laat kom. Jy moet die Leviete tot voor die Here laat nader kom en dan moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê. Aäron moet namens die Israeliete die Leviete voor die Here as 'n gewyde gawe aanbied, sodat hulle gereed is om die dienswerk van die Here te doen. Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die jong bulle plaas. Offer die een dan as 'n reinigingsoffer, en die ander as 'n •brandoffer vir die Here om vir die Leviete versoening te doen. Laat die Leviete voor Aäron en sy seuns staan en bied hulle voor die Here as 'n gewyde gawe aan. So moet jy die Leviete van die Israeliete afsonder; die Leviete moet aan My behoort. Daarna kan die Leviete ingaan om take te verrig by die Tent van Ontmoeting. Jy moet hulle egter reinig en hulle as gewyde gawe aanbied. Onder die Israeliete is hulle immers ten volle aan My afgestaan. In die plek van die eersteling van elke moederskoot, van elke •eersgeborene tussen die Israeliete, het Ek hulle vir my geneem. Want aan My behoort al die eersgeborenes onder die Israeliete, onder mense sowel as diere. Ek het hulle vir My geheilig die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het. Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete geneem. Die Leviete, wat uit die geledere van die Israeliete tot beskikking van Aäron en sy seuns is, stel Ek beskikbaar om die dienswerk van die Israeliete in die Tent van Ontmoeting te verrig en om vir die Israeliete versoening te doen, sodat 'n plaag nie die Israeliete tref wanneer hulle die heiligdom nader nie.” Moses, Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete het toe so met die Leviete gemaak. Alles wat die Here Moses beveel het oor die Leviete, het die Israeliete net so aan hulle gedoen. Die Leviete het hulleself gereinig; hulle het hulle klere gewas, en Aäron het hulle voor die Here as 'n gewyde gawe aangebied. Aäron het vir hulle versoening gedoen om hulle te reinig. Daarna het die Leviete ingegaan om hulle dienswerk te verrig in die Tent van Ontmoeting onder toesig van Aäron en sy seuns. Soos die Here Moses oor die Leviete opdrag gegee het, presies so het hulle met hulle gemaak. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Die volgende geld vir die Leviete: 'n Leviet van vyf-en-twintig jaar en ouer moet ingaan om verpligte diens te doen by die take in die Tent van Ontmoeting. Maar op vyftig jaar moet hy uit verpligte diens tree. Hy mag nie verder take verrig nie. Hy mag wel sy mede-Leviete in die Tent van Ontmoeting bystaan om verpligtinge na te kom, maar take mag hy nie verrig nie. So moet jy die Leviete se verpligtinge reël.” Die Here het in die eerste maand van die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland weggetrek het, met Moses in die Sinaiwoestyn gepraat en gesê: “Die Israeliete moet die Pasga op die vasgestelde tyd vier. Julle moet dit teen laatmiddag op die veertiende dag van hierdie maand op die vasgestelde tyd vier. Volgens al die vaste voorskrifte en bepalings moet julle dit vier.” Moses het die Israeliete toe aangesê om die Pasga te vier. Hulle het die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand teen laatmiddag in die Sinaiwoestyn gevier. Soos wat die Here Moses beveel het, net so het die Israeliete gemaak. Daar was egter manne wat onrein geword het as gevolg van 'n lyk. Hulle kon nie die Pasga op daardie dag vier nie, en het Moses en Aäron nog dieselfde dag genader. Daardie manne het vir hom gesê: “Ons is onrein as gevolg van 'n lyk. Waarom word ons teruggehou, sodat ons nie saam met die Israeliete op die vasgestelde tyd 'n offer aan die Here kan bring nie?” Moses het vir hulle gesê: “Wag eers dat ek kan hoor wat die Here in verband met julle beveel.” Die Here het toe met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê, ‘Wanneer enigiemand van julle of julle nageslagte onrein word as gevolg van 'n lyk, of as hy ver op reis is, mag hy die Pasga vir die Here vier. In die tweede maand op die veertiende dag teen laatmiddag moet hulle dit vier. Met ongesuurde brood en bitter kruie moet hulle dit eet. Hulle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Geen been daarvan mag hulle breek nie. Volgens al die vaste voorskrifte vir die Pasga moet hulle dit vier. Iemand wat egter rein is, nie op reis is nie, en nalaat om die Pasga te vier – daardie persoon sal van sy mense afgesny word, omdat hy die offer van die Here nie op die vasgestelde tyd gebring het nie. Sy sonde sal hy moet dra. “ ‘As 'n •vreemdeling by julle tydelike verblyf het, en hy vier die Pasga vir die Here, moet hy dit presies volgens die vaste voorskrifte vir die Pasga en die bepalings daarvan doen. Een en dieselfde vaste voorskrif geld vir julle, vir die vreemdeling sowel as die landsburger.’ ” Die dag toe die •tabernakel opgerig is, het 'n wolk die tabernakel, die tent met die Getuienis, oordek. In die aand was dit bo die tabernakel asof met die glans van vuur, tot die volgende oggend. So was dit deurentyd: Die wolk bedek dit, en snags is daar die glans van vuur, maar sodra die wolk bo die tent opgaan, breek die Israeliete dadelik kamp op. En op die plek waar die wolk vertoef, daar slaan die Israeliete kamp op. Op bevel van die Here het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. Wanneer die wolk 'n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die Here nagekom en nie kamp opgebreek nie. Soms was die wolk maar net 'n paar dae bo die tabernakel. Op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan, en op bevel van die Here het hulle kamp opgebreek. Soms was die wolk net van die aand tot die volgende oggend daar, en wanneer die wolk dan in die oggend opgaan, het hulle verder getrek. Of dit bedags was of snags, wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Of dit nou twee dae, 'n maand, of langer was, terwyl die wolk lank bo die tabernakel vertoef het, het die Israeliete gekamp en nie verder getrek nie. Maar wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op bevel van die Here het hulle kamp opgebreek. Die verpligtinge teenoor die Here het hulle nagekom op bevel van die Here by monde van Moses. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Maak vir jou twee silwertrompette. Deur pletwerk moet jy dit maak. Gebruik dit vir die saamroep van die volksvergadering en vir die opbreek van die kampe. Wanneer op al twee geblaas word, moet die hele volksvergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Maar as daar net op een geblaas word, moet die leiers, die stamhoofde van Israel, by jou bymekaarkom. Wanneer julle 'n waarskuwingsein blaas, moet die kampe aan die oostekant wegtrek. Wanneer julle 'n tweede waarskuwingsein blaas, moet die kampe aan die suidekant wegtrek. 'n Waarskuwingsein moet geblaas word vir kamp opbreek; maar om die geloofsgemeenskap bymekaar te roep, moet julle gewoonweg blaas, nie 'n waarskuwingsein nie. Die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas. Die blaas van die trompette is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle en vir julle nageslagte geld. “ As julle in julle land in 'n geveg betrokke raak teen 'n teenstander wat julle aanval, moet julle met die trompette 'n waarskuwingsein blaas. Dan sal julle in herinnering gebring word voor die Here, julle God, en julle sal van julle vyande verlos word. In 'n tyd wanneer julle vreugde ervaar, tydens julle vaste feeste en julle nuwemaansfeeste, moet julle by julle •brandoffers en •maaltydoffers op die trompette blaas. Die trompette sal julle by God in herinnering roep. Ek is die Here julle God.” Op die twintigste van die tweede maand in die tweede jaar het die wolk opgegaan van die •tabernakel met die Getuienis. Die Israeliete het volgens hulle trekgroepe weggetrek uit die Sinaiwoestyn. Die wolk het in die Paranwoestyn vertoef. Toe hulle op bevel van die Here by monde van Moses vir die eerste keer kamp opgebreek het, het die eenheid van die nageslag van Juda se kamp eerste weggetrek, volgens hulle leërafdelings. Oor Juda se leërafdeling was Nagson, seun van Amminadab. Oor die leërafdeling van die stam van Issaskar se nageslag was Netanel, seun van Suar. Oor die leërafdeling van die stam van Sebulon se nageslag was Eliab, seun van Gelon. Toe die tabernakel afgebreek is, het die nageslag van Gerson en die nageslag van Merari, wat die tabernakel gedra het, weggetrek. Die eenheid van die kamp van Ruben het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Ruben se leërafdeling was Elisur, seun van Sedeür; oor die leërafdeling van die stam van Simeon se nageslag was Selumiël, seun van Suri-Saddai; en oor die leërafdeling van die stam van Gad se nageslag was Eljasaf, seun van Deüel. Dié wat van Kehat afstam, wat die heilige voorwerpe gedra het, het toe weggetrek. Die tabernakel moes opgeslaan word voordat hulle op 'n plek aankom. Die eenheid van die kamp van Efraim se nageslag het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Efraim se leërafdeling was Elisama, seun van Ammihud; oor die leërafdeling van die nageslag van Manasse was Gamliël, seun van Pedasur; en oor die leërafdeling van die stam van Benjamin se nageslag was Abidan, seun van Gidoni. Die eenheid van die kamp van Dan se nageslag, wat die agterhoede vir al die kampe gevorm het, het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Dan se leërafdeling was Agiëser, seun van Ammi-Saddai; oor die leërafdeling van die stam van Aser se nageslag was Pagiël, seun van Ogran; en oor die leërafdeling van die stam van Naftali se nageslag was Agira, seun van Enan. Dit was die trekgroepe van die Israeliete, volgens hulle leërafdelings. So het hulle weggetrek. Moses het vir Gobab, seun van Reüel, Moses se skoonvader, die Midianiet, gesê: “Ons gaan nou wegtrek na die plek waarvan die Here gesê het, ‘Dit gee Ek vir julle.’ Kom saam met ons. Ons sal vir jou goed wees, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” Gobab het vir hom gesê: “Ek sal nie saamgaan nie, maar eerder na my land en my familie terugkeer.” Moses het geantwoord: “Moet ons asseblief nie verlaat nie, want juis jy weet waar ons kan kamp in die woestyn, en jy kan ons oë wees. As jy saam met ons gaan, sal ons daar die goeie wat die Here aan ons gaan doen, met jou deel.” Hulle het drie dagreise ver van die berg van die Here af getrek met die verbondsark van die Here wat gedurende die drie dagreise voor hulle uit getrek het om vir hulle 'n rusplek te soek. Die wolk van die Here was bedags bo hulle wanneer hulle van 'n kampplek af weggetrek het. Wanneer die ark weggetrek het, het Moses gesê: “Tree op, Here, sodat u vyande verstrooi mag word, en hulle wat U haat, voor U mag wegvlug!” En wanneer die ark dan tot rus gekom het, het hy gesê: “Kom terug, Here, na die tienduisende van die stamme van Israel!” Die volk het erg begin kla in die ore van die Here. Toe die Here dit hoor, het sy toorn ontbrand. Die vuur van die Here het teen hulle ontbrand, en dit het die rand van die kamp verteer. Die volk het na Moses om hulp geroep; Moses het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. Daardie plek is toe Tabera genoem, omdat die vuur van die Here teen hulle ontbrand het. Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: “As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel. Maar nou is ons kele droog; daar is absoluut niks behalwe hierdie manna waarteen ons moet vaskyk nie.” Die manna was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad. Die volk het rondgegaan, dit bymekaargemaak en dan met maalklippe gemaal of in vysels fyngestamp. Hulle het dit in potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het gesmaak soos iets wat met olie gebak is. Wanneer die dou snags op die kamp afgekom het, het die manna daarmee saam afgekom. Moses het die volk hoor kerm, in hulle familiegroepe, elkeen by die ingang van sy tent. Die toorn van die Here het hewig ontbrand. In die oë van Moses was dit verkeerd. Moses sê toe vir die Here: “Waarom maak U dit moeilik vir u dienskneg? Waarom vind ek nie genade in u oë nie? Om darem die las van hierdie hele volk op my te plaas! Het ék dan swanger geraak met hierdie hele volk of het ék aan hulle geboorte gegee, dat U vir my sê, ‘Dra hulle teen jou bors soos 'n pleegouer 'n suigeling dra’ na die grond wat U aan hulle voorouers met 'n eed beloof het? Waar moet ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle kerm by my en sê, ‘Gee vir ons vleis, sodat ons kan eet!’ Alleen kan ek hierdie hele volk nie dra nie, want dit is te veeleisend vir my. As U so met my wil maak, maak my dan maar dadelik dood. As ek genade in u oë gevind het, laat my dan nie my ellende aanskou nie.” Die Here sê toe vir Moses: “Maak vir my sewentig man uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy die ervaring het dat hulle die oudstes van die volk en opsieners is. Neem hulle dan na die Tent van Ontmoeting en laat hulle daar by jou staan. Ek sal afkom en daar met jou praat. Ek sal 'n deel van die Gees wat op jou rus, wegneem en op hulle plaas. Hulle sal dan saam met jou die las van die volk dra sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie. “ Vir die volk moet jy sê, ‘Heilig julleself teen môre, dan sal julle vleis eet. Want julle het in die ore van die Here gekerm en gesê, “As iemand ons maar net vleis sal gee om te eet! Dit was immers vir ons goed in Egipte.” Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet. Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, maar 'n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die Here wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê, “Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek?” ’ ” Daarop het Moses gesê: “Seshonderdduisend mense te voet is die volk in wie se midde ek is, en U sê, ‘Vleis sal Ek vir hulle gee, sodat hulle 'n maand lank sal eet.’ Kan daar kleinvee en beeste vir hulle geslag word, sodat daar vir hulle genoeg is? Sal daar vir hulle genoeg wees as al die visse in die see vir hulle gevang word?” Maar die Here het Moses geantwoord: “Is die Here se hand te kort? Nou sal jy sien of my woord vir jou waar word of nie.” Moses het uitgegaan en die Here se woorde aan die volk meegedeel. Hy het sewentig man onder die oudstes van die volk bymekaargemaak en hulle rondom die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom en met hom gepraat. Hy het van die Gees, wat op Moses was, weggeneem en op die sewentig man, die oudstes, laat kom. Terwyl die Gees op hulle rus, het hulle vurig geprofeteer, maar daarna nie weer nie. Twee manne het egter in die kamp agtergebly, die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Hulle was onder dié wat ingeskryf is, maar hulle het nie na die tent toe uitgegaan nie. Die Gees het ook op hulle gerus en hulle het in die kamp vurig geprofeteer. 'n Jong man het gehardloop en dit vir Moses vertel en gesê: “Eldad en Medad profeteer vurig in die kamp.” Josua, seun van Nun, wat van jongs af vir Moses diens gedoen het, het daarop gereageer; hy het gesê: “Moses, my heer, laat hulle ophou!” Maar Moses het vir hom gesê: “Is jy oorywerig ter wille van my? Ag, was die hele volk van die Here maar profete, dat die Here sy Gees oor hulle sou laat kom!” Moses het daarna na die kamp teruggekeer, hy en die oudstes van Israel. 'n Wind wat van die Here af kom, het toe opgesteek. Dit het kwartels van die see af aangewaai, en hulle oor die kamp gelos – ongeveer twee el bo die grond, 'n dagreis ver aan alle kante rondom die kamp. Die volk het daardie hele dag, die hele nag en ook die hele volgende dag opgebly en kwartels bymekaargemaak. Die een wat die minste gehad het, het tien gomer bymekaargemaak. En hulle het dit vir hulleself oral rondom die kamp uitgesprei. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit klaar gekou is, toe die Here se toorn teen die volk ontbrand. Hy het 'n baie groot slagting onder die volk aangerig. Daardie plek is toe Kibrot-Taäwa genoem, want daar is die gulsige volk begrawe. Vanaf Kibrot-Taäwa het die volk verder getrek na Gaserot, en hulle het in Gaserot gebly. Mirjam en ook Aäron het teen Moses uitgevaar oor die Kussiet wat hy as vrou geneem het. Ja, hy het 'n Kussiet as vrou geneem! Hulle het gesê: “Is dit dan net deur Moses wat die Here gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die Here het dit gehoor. Maar die man Moses was baie beskeie, meer as enige mens op aarde. Die Here het dadelik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle drie na die Tent van Ontmoeting!” Hulle drie het toe gegaan. Die Here het in die wolkkolom afgekom. Hy het by die ingang van die tent gestaan en Aäron en Mirjam geroep. Toe hulle twee vorentoe kom, het Hy gesê: “Luister nou na my woorde: “As daar 'n profeet onder julle is, sal Ek, die Here, Myself in 'n visioen aan hom bekend maak; in 'n droom sal Ek met hom praat. Met my dienskneg Moses is dit anders. In my hele huishouding is hy betroubaar. Van aangesig tot aangesig praat Ek met hom, in 'n verskyning, nie in raaisels nie; die verskyningsvorm van die Here sien hy. Waarom was julle dan nie bang om teen my dienskneg, Moses, uit te vaar nie?” Die toorn van die Here het teen hulle ontbrand, en Hy het weggegaan. Toe die wolk van die tent af terugtrek, staan Mirjam daar met 'n velsiekte, wit soos sneeu. Aäron het na Mirjam gedraai en jou waarlik, sy het 'n velsiekte! Aäron het vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie die straf vir die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het, op ons lê nie. Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind, waarvan die liggaam, wanneer dit uit die moederskoot kom, reeds halfpad verteer is nie.” Moses het toe na die Here om hulp geroep: “O God, asseblief, maak haar tog weer gesond!” Daarop sê die Here vir Moses: “As haar vader haar maar net in haar gesig gespoeg het, sou sy nie sewe dae lank in skande gewees het nie? Laat sy sewe dae lank buite die kamp uitgesluit word; daarna kan sy terugkeer.” Mirjam is toe sewe dae lank buite die kamp uitgesluit, en die volk het nie weggetrek totdat Mirjam teruggekeer het nie. Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Stuur vir jou manne uit sodat hulle die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete gaan gee, kan verken. Een man uit elk van die stamme van hulle voorouers, elkeen van hulle 'n leier, moet julle stuur.” Moses het hulle op bevel van die Here uit die Paranwoestyn gestuur. Almal van hulle was manne wat leiers was onder die Israeliete. Dit was hulle name: Vir die stam van Ruben was dit Sammua, seun van Sakkur; vir die stam van Simeon was dit Safat, seun van Gori; vir die stam van Juda was dit Kaleb, seun van Jefunne; vir die stam van Issaskar was dit Jigal, seun van Josef; vir die stam van Efraim was dit Hosea, seun van Nun; vir die stam van Benjamin was dit Palti, seun van Rafu; vir die stam van Sebulon was dit Gaddiël, seun van Sodi; vir die stam van Josef, naamlik die stam van Manasse, was dit Gaddi, seun van Susi; vir die stam van Dan was dit Ammiël, seun van Gemalli; vir die stam van Aser was dit Setur, seun van Migael; vir die stam van Naftali was dit Nagbi, seun van Wofsi; vir die stam van Gad was dit Geüel, seun van Magi. Dit was die name van die manne wat Moses uitgestuur het om die land te verken. Moses het Hosea, seun van Nun, Josua genoem. Moses het hulle uitgestuur om die land Kanaän te verken. Hy het vir hulle gesê: “Trek hier in die Negev op, en gaan dan op in die bergwêreld. Bekyk die land: Hoe is dit? En die volk wat daarin woon, is dit 'n sterk of swak volk, is hulle min of baie? En hoe is die land waarin hulle woon? Is dit goed of sleg? En hoe is die dorpe waarin die volk woon? Woon hulle in kampe of in versterkte stede? En hoe is die grond? Is dit vrugbaar of skraal? Is daar bome of nie? Span julle in en bring van die land se vrugte saam.” Dit was toe net die tyd van die vroeë druiwe. Hulle het opgetrek en die land verken vanuit die Tsinwoestyn tot by Regob, by Lebo-Hamat. Hulle het opgetrek deur die Negev en Hebron bereik, waar Agiman, Sesai en Talmai, die afstammelinge van die Enakiete was. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. Toe hulle die Eskoldal bereik, sny hulle daar 'n rank met een druiwetros wat twee van hulle met 'n draaghout gedra het, af, en ook van die granate en vye. Daardie plek is toe Eskoldal genoem, oor die druiwetros wat die Israeliete daar afgesny het. Hulle het aan die einde van veertig dae van hulle verkenningstog van die land teruggekeer. Hulle het gegaan en by Moses, Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Hulle het aan hulle en die hele volksvergadering verslag gedoen en aan hulle die land se vrugte gewys. Hulle het vir Moses vertel en gesê: “Ons het in die land aangekom waarheen u ons gestuur het. En verder, dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning, en hier is van die land se vrugte. Die volk wat in die land woon, is egter baie sterk. Die stede is versterk en baie groot. Ons het ook afstammelinge van die Enakiete daar gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en •Amoriete woon in die bergwêreld, terwyl die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan woon.” Maar Kaleb het die mense by Moses stilgemaak. Hy het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan sonder twyfel die oorhand daaroor kry.” Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: “Ons kan nie teen daardie volk uittrek nie, want hulle is sterker as ons.” Hulle het toe onder die Israeliete 'n gerug versprei oor die land wat hulle verken het: “Die land waardeur ons getrek het om te verken, is 'n land wat sy inwoners vernietig. Al die mense wat ons daar gesien het, is groot manne. Daar het ons reuse gesien.” Die Enakiete stam uit die reuse. “Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.” Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! Waarom bring die Here ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die Here moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die Here in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.” Daarop het Moses vir die Here gesê: “Die Egiptenare sal dit hoor – U het immers hierdie volk met u krag uit hulle midde laat wegtrek – en dan sal hulle dit vir hierdie land se inwoners vertel. Hulle het gehoor dat U, Here, onder hierdie volk teenwoordig is en dat U, Here, van aangesig tot aangesig aan hulle verskyn het en dat u wolk bo hulle bly – ja, dat U in 'n wolkkolom bedags voor hulle uitgaan en in 'n vuurkolom snags. As U dan hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u roem gehoor het, sê, ‘Dit is omdat die Here nie in staat was om hierdie volk in die land in te bring wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, dat Hy hulle in die woestyn omgebring het. ’ Daarom dan, laat die krag van my Heer tog groot wees, soos U gesê het, “ ‘Die Here is geduldig en oorvloedig in troue liefde. Hy skeld sondeskuld en oortreding kwyt, maar laat beslis niks ongestraf nie; Hy laat kinders tot die derde en vierde geslag boet vir die skuld van voorouers.’ “Vergewe asseblief die sondeskuld van hierdie volk volgens die grootheid van u troue liefde, soos U hierdie volk van Egipte af tot hier kwytgeskeld het.” Die Here het gesê: “Ek vergewe, soos jy versoek. Maar aan die ander kant, so seker as wat Ek leef, en so seker as wat die heerlikheid van die Here die hele aarde vul, niemand van al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien keer uitgedaag het, en na my stem nie geluister het nie, sal die land sien wat Ek aan hulle voorouers met 'n eed beloof het nie. Ja, almal wat My minag, sal dit nie sien nie. Maar wat my dienskneg Kaleb betref, omdat hy 'n ander gees openbaar het, en My met volharding gevolg het, sal Ek hom inbring in die land waarheen hy gekom het. Sy nageslag sal dit in besit neem. “Die Amalekiete en die Kanaäniete bewoon die oop vlaktes. Draai môre weg, dan trek julle weg die woestyn in, op pad na die Rietsee. ” Die Here het verder met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Hoe lank nog moet Ek hierdie bose volksvergadering verduur wat aanhoudend by My mor? Die gemor waarmee die Israeliete aanhoudend by My aankom, het Ek gehoor. Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef,’ is die uitspraak van die Here, ‘waarlik, wat Ek julle hoor sê het, net so sal Ek met julle maak. In hierdie woestyn sal julle dooie liggame val, julle almal wat ingeskryf is – die volle getal van twintig jaar en ouer, julle wat teen My gemor het. Ja, julle sal nie in die land ingaan waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun. En julle jong kinders, van wie julle gesê het, “Hulle gaan buit word” – Ek sal hulle inbring sodat hulle die land leer ken wat deur julle verwerp is. Maar wat julle betref, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn val. En julle kinders sal veertig jaar lank herders in die woestyn wees. Hulle sal die gevolge van julle ontrouheid moet dra totdat julle lyke in die woestyn vergaan het. Volgens die getal dae wat julle die land verken het, naamlik veertig dae, sal julle sondeskuld moet dra, 'n jaar vir elke dag – dus veertig jaar lank. Dan sal julle weet wat dit beteken om My te dwarsboom.’ Ek, die Here, lê 'n eed af. Dit is wat Ek gaan doen aan hierdie bose volksvergadering wat teen My saamgekom het: In hierdie woestyn sal hulle vergaan, hier sal hulle sterf.” Die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat teruggekeer het en die hele volksvergadering teen die Here laat mor het deur 'n gerug oor die land te versprei, ja, daardie manne wat 'n slegte gerug oor die land versprei het, het deur 'n plaag in die Here se teenwoordigheid omgekom. Net Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, onder daardie manne wat gegaan het om die land te verken, het bly leef. Nadat Moses hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk diep getreur. Hulle het die oggend vroeg opgestaan, na die kruin van die berg opgegaan en gesê: “Hier is ons! Ons sal optrek na die plek waarvan die Here gepraat het, want ons het gesondig.” Maar Moses het geantwoord: “Waarom nou skielik? Julle oortree die bevel van die Here. Dit sal nie slaag nie. Moenie optrek nie, want die Here is nie in julle midde nie; daarom moet julle nie optrek nie. Julle mag nie deur julle vyande verslaan word nie; want dit is die Amalekiete en die Kanaäniete teen wie julle daar te staan sal kom. Julle gaan deur die swaard val, juis omdat julle van die Here weggedraai het. Die Here sal nie by julle wees nie.” Hulle was egter vermetel genoeg om na die kruin van die berg op te trek, terwyl die verbondsark van die Here, en Moses, nie die kamp verlaat het nie. Die Amalekiete en Kanaäniete wat op daardie bergland woon, het afgekom. Hulle het die volk verslaan en hulle uitmekaar laat spat tot by Gorma. Daarna het die Here met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land van julle vaste verblyf kom wat Ek vir julle gaan gee, en julle bring 'n offergawe vir die Here, 'n •brandoffer of •maaltydoffer uit die beeste of kleinvee om 'n buitengewone gelofte te vervul; of tydens 'n vrywillige offer; of op julle feesdae om 'n aangename geur vir die Here te bring, dan moet die persoon wat sy gawe vir die Here aanbied, 'n •graanoffer bring wat bestaan uit 'n tiende van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n kwart hin olyfolie. En 'n kwart hin wyn moet jy as •drankoffer bring by die brandoffer of die maaltydoffer, vir elke lam. Of as dit vir 'n ram is, moet jy 'n graanoffer van twee tiendes van 'n efa meel gesifte meel bring, klam gemaak met 'n derde hin olyfolie; en as drankoffer moet jy 'n derde hin wyn aanbied as 'n geurige offer vir die Here. En wanneer jy 'n jong bul as brandoffer of maaltydoffer aan die Here bring om 'n buitengewone gelofte te vervul of as gewone maaltydoffer, moet daar saam met die jong bul 'n graanoffer gebring word wat bestaan uit drie tiendes van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n halwe hin olyfolie. Jy moet ook 'n halwe hin wyn as drankoffer bring; dit is 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here. So moet dit gedoen word vir elke bul, elke jong ram of stuk kleinvee uit die skape of bokke. Hoeveel julle ook al offer, presies so moet julle dit doen by elke offer, afgesien van die getal. “ ‘Elke landsburger moet dit so doen om 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here, aan te bied. En wanneer 'n •vreemdeling wat tydelik by julle verblyf het, of iemand wat al geslagte lank by julle woon, 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here bring, moet hy dit net soos julle doen. Wat die geloofsgemeenskap betref – een vaste voorskrif geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelike verblyf het. Dit is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. Voor die Here is vreemdelinge net soos julle. Dieselfde wet en dieselfde bepaling geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelik by julle verblyf het.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land aankom waarheen Ek julle gaan neem, en julle van die land se brood eet, moet julle vir die Here 'n •wydingsgeskenk eenkant sit. Van julle eerste baksel moet julle 'n ringbrood as wydingsgeskenk eenkant sit. Soos die wydingsgeskenk van die dorsvloer, so moet julle dit eenkant sit. Uit julle eerste baksel moet julle en julle nageslagte aan die Here 'n wydingsgeskenk afstaan.’ ” “ ‘ Dit kan gebeur dat julle onopsetlik iets verkeerds doen en nie al hierdie gebooie nakom wat die Here aan Moses opgedra het nie, ja, alles wat die Here julle by monde van Moses beveel het, van die dag af toe die Here dit beveel het, en daarna, vir julle nageslagte. As dit onopsetlik gedoen is, sonder die medewete van die volksvergadering, moet die hele volksvergadering een jong bul as 'n •brandoffer bring saam met die bypassende graan- en drankoffer, soos bepaal word, as 'n geurige offer vir die Here, asook een bokram as 'n •reinigingsoffer. Die priester moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete versoening doen. Dit sal hulle vergewe word, want dit is 'n onopsetlike sonde. Hulle het dan hulle offer as 'n offergawe aan die Here gebring, asook hulle reinigingsoffer voor die Here vir hulle onopsetlike oortreding. Die hele volksvergadering van die Israeliete en die vreemdeling wat tydelik tussen julle verblyf het, sal vergewe word, want die hele volk was betrokke by die onopsetlike oortreding. “ ‘As iemand onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as reinigingsoffer aanbied. Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik 'n oortreding begaan het, voor die Here versoening doen oor sy onopsetlike sonde. Hy moet vir hom versoening doen en dan sal dit hom vergewe word. Die gebore Israeliete onder julle en die vreemdelinge wat tussen julle tydelike verblyf het – dieselfde wet geld vir julle almal, vir elkeen wat 'n onopsetlike oortreding begaan. Maar die persoon onder die landsburgers en die vreemdelinge wat dit uitdagend doen – dit is met die Here wat hy spot. Hierdie persoon sal uit die midde van sy volk uitgeroei word. Omdat hy die woord van die Here verag en sy gebod verbreek het, sal hierdie persoon beslis afgesny word. Sy sondeskuld rus op hom.’ ” Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die Sabbatdag hout bymekaarmaak. Hulle wat op hom afgekom het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses, Aäron en die hele volksvergadering gebring. Hulle het hom onder bewaking gehou, omdat dit nie duidelik was wat met hom gedoen moet word nie. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Die hele volksvergadering het hom uit die kamp geneem, en hom met klippe doodgegooi. Hy het gesterf, soos wat die Here Moses beveel het. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle dat hulle vir hulle tossels aan die soom van hulle klere moet maak – ook hulle nageslagte. En dat hulle aan die tossels by die soom 'n draad pers wol moet vasmaak. Dit sal julle kenmerkende tossels wees en wanneer julle dit sien, sal julle dink aan al die gebooie van die Here en dit uitvoer. Julle sal nie julle harte en oë volg, waardeur julle verlei word nie. Dit is sodat julle al my gebooie sal onthou en uitvoer, en sodat julle heilig kan wees vir julle God. Ek is die Here, julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here, julle God.” Korag, seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On, seun van Pelet, uit die nageslag van Ruben, geneem. Hulle en tweehonderd-en-vyftig mans van die Israeliete, leiers van die volksvergadering wat vir die geleentheid opgeroep is, manne van aansien, het voor Moses gaan staan. Hulle het hulle teen Moses en Aäron opgestel en vir hulle gesê: “Julle gaan nou te ver! Want die hele volksvergadering, hulle almal, is heilig, en die Here is in hulle midde. Waarom verhef julle julleself bo die geloofsgemeenskap van die Here? ” Toe Moses dit hoor, het hy op sy gesig neergeval. Hy het met Korag en sy hele bende gepraat en gesê: “Môreoggend sal die Here bekend maak wie aan Hom behoort en wie heilig is; Hy sal daardie persoon na Hom laat nader kom. Die een wat Hy kies, sal Hy na Hom laat naderk om. Julle moet die volgende doen: Korag, jy en jou hele bende, vat vir julle vuurpanne. Sit môre kole vuur daarin; gooi reukwerk daarop in die teenwoordigheid van die Here. Die man wat deur die Here gekies word, hy is die heilige. Julle het nou te ver gegaan, Leviete!” Moses het ook vir Korag gesê: “Luister nou, nageslag van Levi! Is dit nie vir julle genoeg nie dat die God van Israel julle afgesonder het van die volksvergadering van Israel om julle na Hom te laat nader kom om tabernakeldiens vir die Here te doen, en om diensbaar te wees aan die volksvergadering deur hulle by te staan? Hy het jou en al jou broers, die Leviete, saam met jou tot Hom laat nader; maar nou eis julle ook die priesterskap. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here saamspan. Maar Aäron, wie is hy dat julle oor hom mor?” Moses het iemand gestuur om Datan en Abiram, seuns van Eliab, te roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie gaan nie. Is dit nie genoeg nie dat jy ons uit die land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn te laat sterf, dat jy ook nog voortdurend oor ons wil baasspeel? Daarby het jy ons nie na 'n land gebring wat oorloop van melk en heuning nie, en jy het nie vir ons 'n erfdeel van lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie manne se oë verblind? Ons sal nie gaan nie!” Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet nie ag slaan op hulle offergawe nie. Ek het nie 'n enkele donkie van hulle geneem nie, en ek het nie een van hulle kwaad aangedoen nie.” Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die Here is, jy en hulle en Aäron. Elkeen van julle moet sy vuurpan neem en reukwerk daarop sit. Dan moet julle nader kom voor die Here, elkeen met sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” Elkeen van hulle het toe sy vuurpan geneem, kole vuur daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Hulle het by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron. Korag het die hele volksvergadering teenoor hulle laat stelling inneem by die ingang van die Tent van Ontmoeting; en toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele volksvergadering. Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “Onttrek julle aan hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval en gesê: “O God, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, gaan U vir die hele volksvergadering vertoornd wees wanneer een man sondig?” Daarop het die Here vir Moses gesê: “Sê vir die volksvergadering, ‘Gee pad rondom die blyplekke van Korag, Datan en Abiram!’ ” Moses het opgestaan en na Datan en Abiram gegaan, en die oudstes van Israel het hom gevolg. Toe praat hy met die volksvergadering en sê: “Kom tog weg van die tente van hierdie bose manne! Moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie, anders word julle meegesleur oor al hulle sonde.” Hulle het toe padgegee rondom die woonplek van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgegaan en by die ingang van hulle tente gaan staan, saam met hulle vroue, kinders en kleuters. Moses het gesê: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat dit nie uit my eie is nie. As hierdie mense soos elke ander mens sterf, die lot van elke mens hulle ook tref, het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here iets nuuts skep, as die aarde sy mond oopsper en hulle verswelg met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend na die •doderyk afdaal, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.” Net toe hy al hierdie woorde klaar gesê het, het die grond onder hulle oopgeskeur. Die aarde het sy mond oopgemaak en hulle en hulle huisgesinne verswelg – ja, al die mense wat aan Korag behoort, en al hulle besittings. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend afgedaal na die doderyk. Die aarde het oor hulle toegegaan en hulle het verdwyn uit die midde van die geloofsgemeenskap. Die hele Israel wat om hulle was, het gevlug oor hulle geskreeu, omdat hulle gedink het, anders verswelg die aarde hulle ook! 'n Vuur het van die Here af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk nadergebring het. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Sê vir Eleasar, seun van die priester Aäron, hy moet die vuurpanne uit die brand haal en die kole vuur ver weg uitstrooi, want hierdie dinge is heilig. En die vuurpanne van daardie sondaars wat met hulle lewens betaal het – maak uitgeklopte plate daarvan, plaatwerk vir die altaar. Omdat hulle dit in die teenwoordigheid van die Here gebring het, is dit heilig. Dit sal dien as 'n teken vir die Israeliete.” Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, nadergebring het, en hulle het dit uitgeklop as plaatwerk vir die altaar. Dit dien as 'n herinnering aan die Israeliete, sodat geen onbevoegde persoon wat nie uit die nageslag van Aäron is, sal nader kom om reukwerk in die teenwoordigheid van die Here te brand nie, en hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos wat die Here by monde van Moses vir hom gesê het. Die hele volksvergadering van die Israeliete het die volgende oggend teenoor Moses en Aäron gemor: “Dit is julle wat die volk van die Here doodgemaak het.” Toe die volksvergadering teenoor Moses en Aäron stelling inneem, het hulle in die rigting van die Tent van Ontmoeting gedraai. Skielik het die wolk dit bedek, en het die heerlikheid van die Here verskyn. Moses en Aäron het toe tot voor die Tent van Ontmoeting gegaan. Toe het die Here met Moses gepraat en gesê: “Gaan weg van hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval, en Moses het vir Aäron gesê: “Vat die vuurpan, sit gloeiende kole van die altaar daarop en gooi reukwerk daaroor. Gaan dadelik na die volksvergadering en doen vir hulle versoening, want 'n oordeel uit toorn het van die Here uitgegaan; die plaag het begin.” Aäron het dit geneem, soos Moses gesê het, en tot in die middel van die byeenkoms gehardloop; en inderdaad, die plaag het reeds onder die volk begin! Maar hy het die reukwerk op die kole gegooi en vir die volk versoening gedoen. Hy het tussen die dooies en die lewendes gaan staan en die plaag het opgehou. Dié wat deur die plaag omgekom het, was veertienduisend sewehonderd, naas dié wat oor die saak van Korag dood is. Aäron het na Moses toe teruggegaan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, en so is die plaag gestuit. Daarna het die Here met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete, en kry by hulle stawwe, 'n staf vir elke stam; kry dit van al die leiers van hulle stamme – twaalf stawwe. Elkeen se naam moet jy op sy staf skryf. Aäron se naam moet jy op die staf van Levi skryf, want daar is net een staf vir 'n stamhoof. Sit dit dan neer in die Tent van Ontmoeting voor die Getuienis waar Ek julle sal ontmoet. En die man wat ek kies, sy staf sal bot. Ek wil ontslae raak van die gekerm van die Israeliete, wat voortdurend teen julle mor.” Moses het met die Israeliete gepraat, en al hulle leiers het vir hom 'n staf gegee, vir elke leier een staf, volgens hulle stamme, twaalf stawwe. En die staf van Aäron was ook onder hulle stawwe. Moses het die stawwe voor die Here neergesit in die tent met die Getuienis. Die volgende dag toe Moses in die tent met die Getuienis kom, het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, begin bot! Dit het bloeisels laat uitspruit, blomme gedra en ryp amandels voortgebring. Moses het toe al die stawwe wat voor die Here was, na al die Israeliete toe uitgebring. Hulle het dit gesien en elkeen het sy staf geneem. Die Here het vir Moses gesê: “Sit Aäron se staf weer terug voor die Getuienis om dit te bewaar as teken vir die opstandiges. Jy moet 'n einde maak aan hulle gekerm by My, sodat hulle nie sterf nie.” Moses het dit gedoen. Soos die Here hom beveel het, presies so het hy gemaak. Die Israeliete het vir Moses gesê: “Kyk, ons vergaan; ons gaan tot niet. Ons gaan almal tot niet! Elkeen wat enigsins nader gaan na die •tabernakel van die Here, sal sterf. Is ons dan almal bestem om te vergaan?” Die Here het vir Aäron gesê: “Jy, jou seuns en jou familie saam met jou – julle sal die gevolge dra van sonde teen die heiligdom; en jy en jou seuns saam met jou sal die gevolge dra van sonde in verband met julle priesterdiens. Laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, sodat hulle by jou kan aansluit en jou kan bystaan waar jy en jou seuns saam met jou voor die tent met die Getuienis is. Hulle moet van jou verpligtinge nakom, en ook verpligtinge in verband met die hele •tabernakel. Maar naby voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, sodat hulle nie sterf nie – nie hulle nie, en ook nie julle nie. Hulle moet by jou aansluit en die verpligtinge by die Tent van Ontmoeting nakom, ja, al die werk by die tent. Maar 'n onbevoegde persoon mag nie naby julle kom nie. Julle moet die verpligtinge by die heiligdom en die altaar nakom, sodat die Israeliete nie weer deur 'n oordeel uit toorn getref word nie. Wat My betref, kyk, Ek het julle broers, die Leviete, uit die Israeliete geneem as 'n geskenk vir julle. Hulle is aan die Here afgestaan om die werk by die Tent van Ontmoeting te doen. Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesterdiens nakom, in alle sake by die altaar en agter die voorhangsel. Daar moet julle diens doen. As 'n geskenk met die oog op dienslewering gee Ek julle priesterskap aan julle. Maar 'n onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.” Die Here het vir Aäron gesê: “Wat My betref, kyk, Ek het aan jou die verpligting in verband met my •wydingsgeskenke toevertrou. Al die •heilige gawes van die Israeliete – aan jou en aan jou seuns gee Ek dit as 'n geskenk, as 'n deel wat hulle altyd moet kry. Die volgende van die •besonder heilige gawes, dit wat nie verbrand word nie, is wat jou toekom: al hulle offers – al hulle •graanoffers, al hulle •reinigingsoffers en al hulle •hersteloffers wat hulle vir My bring. Die besonder heilige gawes kom jou en jou seuns toe. Op 'n besonder heilige plek moet jy dit eet. Elke manspersoon mag dit eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees. Die volgende kom jou toe: Wydingsgeskenke wat hulle gee, al die gewyde gawes van die Israeliete gee Ek aan jou en aan jou seuns en dogters wat saam met jou is, as 'n deel wat julle altyd moet kry. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet. Al die beste olie, al die beste •nuwe wyn en koring – die eerste opbrengs daarvan wat hulle vir die Here gee, gee Ek vir jou. Die eerste opbrengs van alles wat op hulle land is, wat hulle vir die Here bring, kom jou toe. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet. Alles wat onder die ban is in Israel, kom jou toe. Elke eersteling van die moederskoot, elke lewende wese wat vir die Here gebring word, kom jou toe, of dit nou mense of diere is. Onthou net, jy moet beslis die eersgeborenes van mense laat loskoop, en die eersgeborenes van •onrein diere mag jy laat loskoop. Wat die loskoop daarvan betref: Vanaf 'n maand oud moet jy laat loskoop teen die loskoopwaarde van vyf sikkel silwer volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld, wat twintig gera per sikkel is. Maar die eersgeborenes van beeste, skape en bokke moet jy nie laat loskoop nie; hulle is heilig. Hulle bloed moet jy teen die altaar sprinkel en hulle vet moet jy verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Hulle vleis kom jou toe; soos die borsstuk van die gewyde gawe en die regterboud, kom dit jou toe. Al die wydingsgeskenke van heilige gawes wat die Israeliete vir die Here aanbied, gee Ek vir jou en vir jou seuns en jou dogters saam met jou as die deel wat julle altyd moet kry. Dit geld as 'n ewige verbond van sout voor die Here vir jou en jou nageslag saam met jou.” Die Here het vir Aäron gesê: “In hulle land sal jy nie erf nie; 'n erfdeel sal daar nie vir jou tussen hulle wees nie. Ek is jou erfdeel, jou erfenis tussen die Israeliete. En wat die Leviete betref, kyk, Ek gee al die tiendes in Israel as erfenis in ruil vir hulle dienswerk wat hulle doen, die dienswerk by die Tent van Ontmoeting. Die Israeliete moenie weer naby die Tent van Ontmoeting kom, om sodoende sonde op hulle te laai en te sterf nie. Maar die Leviete, dit is hulle wat die dienswerk by die Tent van Ontmoeting moet doen. Hulle sal hulle skuld dra. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir julle nageslag: Tussen die Israeliete mag hulle nie 'n erfenis ontvang nie; want die tiendes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenk vir die Here aanbied, gee Ek vir die Leviete as erfenis. Daarom het Ek vir hulle gesê hulle sal nie 'n erfenis tussen die Israeliete ontvang nie.” Die Here het verder met Moses gepraat en gesê: “ Jy moet met die Leviete praat. Sê vir hulle, ‘Wanneer julle van die Israeliete die tiende ontvang wat Ek vir julle van hulle kant as julle erfenis gegee het, moet julle daarvan 'n wydingsgeskenk vir die Here aanbied – 'n tiende van die tiende. Julle wydingsgeskenk sal vir julle gereken word soos die koring van die dorsvloer en soos die volle opbrengs van die parskuip. So moet ook julle 'n wydingsgeskenk vir die Here aanbied uit al julle tiendes wat julle van die Israeliete ontvang. Julle moet daarvan aan die priester Aäron gee, as 'n wydingsgeskenk vir die Here. Uit al julle geskenke moet julle die volle wydingsgeskenk vir die Here aanbied, uit al die beste geskenke 'n deel daarvan as sy heilige gawe.’ “Jy moet ook vir hulle sê, ‘As julle die beste daarvan aanbied, dan word dit vir die Leviete gereken as die opbrengs van 'n dorsvloer en die opbrengs van 'n parskuip. Julle en julle gesinne mag dit op enige plek eet, want dit is vir julle 'n beloning in ruil vir julle dienswerk by die Tent van Ontmoeting. Julle sal nie sonde op julle laai wanneer julle die beste daarvan aanbied nie. Maar die heilige gawes van die Israeliete mag julle nie ontheilig nie, anders sterf julle.’ ” Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Dit is 'n vaste wetlike voorskrif wat die Here beveel het, ‘Sê vir die Israeliete hulle moet 'n rooi koei sonder gebrek vir jou bring, een waaraan daar geen liggaamsgebrek is nie en wat nog nie onder die juk was nie. Julle moet haar vir die priester Eleasar gee. Hy moet haar uit die kamp neem en sy moet voor hom geslag word. Die priester Eleasar moet van haar bloed met sy vinger neem en hy moet van die bloed sewe keer in die rigting van die Tent van Ontmoeting se ingang sprinkel. Die koei moet voor sy oë verbrand word. Haar vel, haar vleis en haar bloed moet saam met haar pensmis verbrand word. Daarna moet die priester 'n stukkie sederhout, 'n marjoleintakkie en 'n karmosynrooi toutjie neem en dit binne-in die vuur gooi waarin die koei verbrand word. Die priester moet dan sy klere was en sy liggaam met water afspoel; daarna mag hy in die kamp ingaan. Die priester is egter •onrein tot die aand. Die een wat haar verbrand, moet sy klere met water was en sy liggaam met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 'n Man wat •rein is, moet die as van die koei bymekaarmaak en dit buitekant die kamp op 'n rein plek neersit. Dit moet vir die volksvergadering van die Israeliete in bewaring gehou word as reinigingswater. Dit is 'n •reinigingsoffer. Die persoon wat die as van die koei bymekaarmaak, moet sy klere was, en hy sal tot die aand onrein wees. Dit is vir die Israeliete en vir die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen julle het, 'n vaste voorskrif wat altyd geld. “ ‘ Iemand wat aan 'n dooie raak, aan enige mens se lyk, is onrein sewe dae lank. So iemand moet homself op die derde en op die sewende dag met die water reinig, dan is hy rein. Maar as hy homself nie op die derde en op die sewende dag reinig nie, sal hy nie rein wees nie. Elkeen wat aan 'n dooie raak, die liggaam van 'n mens wat gesterf het, en homself nie reinig nie, verontreinig die •tabernakel van die Here. Daardie persoon sal van Israel afgesny word. Omdat die reinigingswater nie oor hom gesprinkel is nie, is hy onrein. Sy onreinheid is steeds op hom. “ ‘Dit is die voorskrifte wanneer iemand in 'n tent sterf: Elkeen wat by die tent ingaan en alles wat in die tent is, sal sewe dae lank onrein wees. En elke oop pot waarop daar nie 'n deksel vasgebind is nie, is onrein. “ ‘Elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat met 'n swaard doodgemaak is, of aan iemand wat gesterf het, of aan 'n menslike been, of aan 'n graf, sal sewe dae lank onrein wees. Dan moet hulle vir die onrein persoon van die verbrande reinigingsoffer se as neem, en lopende water in 'n kleipot daaroor gooi. 'n Rein persoon moet 'n marjoleintakkie neem en in die water doop. Dan moet hy dit sprinkel oor die tent en al die gebruiksvoorwerpe en ook oor die persone wat daar is – oor iemand wat aan 'n menslike been of aan 'n gesneuwelde of aan 'n dooie of aan 'n graf geraak het. Die rein persoon moet op die derde en op die sewende dag die water op die onrein persoon sprinkel. Nadat hy die onreine op die sewende dag gereinig het, moet hy sy klere was en hom met water afspoel. Hy sal rein wees teen die aand. “ ‘As iemand wat onrein is, homself nie reinig nie, sal daardie persoon uit die geloofsgemeenskap verwyder word, want hy het die heiligdom van die Here verontreinig. Die reinigingswater is nie op hom gesprinkel nie; hy is onrein. Dit moet vir altyd vir hulle 'n vaste voorskrif wees. “ ‘Die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was, en die een wat aan die reinigingswater raak, is onrein tot die aand. Alles waaraan die onreine raak, is onrein; en die persoon wat aan hom raak, is onrein tot die aand.’ ” Die Israeliete, die hele volksvergadering, het in die eerste maand in die Tsinwoestyn aangekom. Die volk het in Kades gebly. Mirjam het daar gesterf, en sy is daar begrawe. Toe daar nie meer water vir die volksvergadering was nie, het hulle teen Moses en Aäron saamgespan. Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Ag, as ons maar omgekom het toe ons volksgenote voor die Here omgekom het! Waarom het julle die geloofsgemeenskap van die Here na hierdie woestyn gebring? Was dit sodat ons en ons vee hier moet sterf? Ja, waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons na hierdie slegte plek toe te bring? Dit is nie 'n plek geskik vir saai of vyebome of wingerde of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie.” Moses en Aäron het van die byeenkoms af weggegaan na die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Hulle het op hulle gesigte neergeval. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan hulle. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Neem die staf en maak die volksvergadering bymekaar, jy en jou broer Aäron. Dan moet julle voor hulle oë met die rots praat; die rots sal sy water gee. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom en die volksvergadering en hulle vee laat drink.” Moses het die staf uit die teenwoordigheid van die Here geneem, soos Hy hom beveel het. Toe het Moses en Aäron die geloofsgemeenskap voor die rots bymekaar laat kom, en vir hulle gesê: “Luister nou, opstandiges! Moet ons uit hierdie rots vir julle water laat kom?” Moses het sy hand gelig en die rots twee keer met sy staf geslaan. Toe kom daar baie water uit, sodat die volksvergadering en hulle vee kon drink. Maar die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Omdat julle nie vertroue in My gestel het om My heiligheid voor die oë van die Israeliete te erken nie, daarom sal julle hierdie geloofsgemeenskap nie in die land inneem wat Ek vir hulle gegee het nie.” Dit was die water van Meriba, waar die Israeliete die Here verwyt het, en Hy homself toe as heilig aan hulle bekend gemaak het. Moses het boodskappers gestuur vanaf Kades na die koning van Edom: “So sê u broer Israel, ‘U weet self van al die swaarkry wat ons ervaar het. Ons voorouers het afgetrek na Egipte en ons het 'n lang tyd in Egipte gebly, maar die Egiptenare het ons en ons voorouers sleg behandel. Ons het na die Here om hulp geroep; Hy het ons hulpgeroep gehoor en 'n •engel gestuur. Hy het ons uit Egipte laat wegtrek. Kyk, ons is nou in Kades, 'n dorp op die grens van u grondgebied. Laat ons asseblief deur u land trek. Ons sal nie deur lande of wingerde trek nie, en ons sal nie water uit putte drink nie. Van die Koningspad sal ons nie links of regs afwyk nie, totdat ons deur u grondgebied getrek het.’ ” Maar Edom het vir hom laat weet: “Jy mag nie deur my gebied trek nie; anders trek ek jou met die swaard tegemoet.” Die Israeliete het toe vir Edom laat weet: “Ons sal net op die grootpad deurtrek. As ons van u water drink, ons en ons vee, sal ons die koopprys daarvoor gee – net dit, niks meer nie. Ons wil te voet deurtrek.” Maar hy het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Edom het hulle tegemoetgetrek met baie manskappe en 'n sterk mag. So het Edom geweier om aan Israel deurtog deur sy grondgebied te verleen, en Israel het van hom af weggedraai. Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. Die Here het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: “ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.” Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur. Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev regeer het, hoor dat Israel in die rigting van Atarim kom, het hy teen Israel gaan veg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer. Israel het toe aan die Here 'n gelofte afgelê en gesê: “As U hierdie volk ten volle in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. ” Die Here het na die versoek van Israel geluister en die Kanaäniete aan hulle oorgegee. Israel het hulle en hulle stede met die banvloek getref en die plek Gorma genoem. Die Israeliete het van die berg Hor af weggetrek met die pad na die Rietsee om rondom die land Edom te trek. Maar op pad het die volk ongeduldig geraak. Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos.” Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur en hulle het die volk gepik. Baie mense van die volk Israel het gesterf. Die volk het na Moses gekom en gesê: “Ons het gesondig, want ons het teen die Here en teen jou uitgevaar. Bid tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid. Die Here het vir Moses gesê: “Maak vir jou 'n slang en sit dit op 'n paal, dan sal elkeen wat gepik is en daarna kyk, bly leef.” Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. Wanneer 'n slang iemand pik, en hy kyk na die koperslang, het hy bly leef. Die Israeliete het weggetrek en kamp opgeslaan by Obot. Daarna het hulle van Obot af weggetrek en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn, wat langs Moab, aan die oostekant, lê. Van daar af het hulle weggetrek en kamp opgeslaan in die Sereddal. Van daar af het hulle weggetrek en kamp opgeslaan oorkant die Arnon in die woestyn wat uitstrek vanaf die grens van die •Amoriete. Die Arnon is immers die grens van Moab; dit lê tussen Moab en die Amoriete. Daarom word daar in die Boekrol van die Oorloë van die Here gepraat van: “Waheb in Sufa en die dale, die Arnon, en die hange van die dale wat afvoer na die woongebied van Ar, aanliggend aan die grondgebied van Moab.” Daarvandaan is hulle na Beër. Dit is die put waar die Here vir Moses gesê het: “Bring die volk byeen, sodat Ek vir hulle water kan gee.” Israel het daarna hierdie lied gesing: “Wel op, put – sing vir hom! Die put – leiers het dit gegrawe; vooraanstaandes van die volk het dit uitgekap, met 'n heerserstaf en hulle septers.” Van die woestyn af is hulle na Mattana, en van Mattana af na Nagaliël, en van Nagaliël na Bamot, en van Bamot na die vallei wat in die gebied van Moab is, naby die kruin van die Pisga, wat 'n uitsig bied oor die wildernis. Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete: “Ek wil deur u land trek. Ons sal nie afdraai na landerye en wingerde nie. Ons sal nie water drink uit 'n put nie. Ons sal net op die Koningspad bly totdat ons deur u grondgebied is.” Sihon wou egter nie aan Israel deurgang verleen deur sy grondgebied nie. Sihon het al sy manskappe byeengebring en Israel tegemoetgetrek in die woestyn. Hy het tot by Jahas gekom en teen Israel geveg. Maar Israel het hom met die skerpte van die swaard verslaan en sy land in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok, tot teen die Ammoniete, want die grens met die Ammoniete was sterk. Israel het al hierdie stede ingeneem. Hulle het hulle gevestig in al die stede van die Amoriete, in Gesbon en in al die omliggende dorpies, want Gesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete. Hy is die een wat oorlog gemaak het teen die vorige koning van Moab, en sy hele land tot by die Arnon uit sy hand geneem het. Daarom sê die spotdigters: “Kom na Gesbon! Die stad van Sihon moet herbou en gevestig word. Want 'n vuur het uitgegaan uit Gesbon, 'n vlam uit die dorp van Sihon. Dit het Ar-Moab verteer, die besitters van die offerhoogtes van Arnon. Wee jou, Moab! Jy is vernietig, volk van Kemos. Sy seuns wat oorleef, het hy oorgegee, sy dogters in gevangenskap aan Sihon, die koning van die Amoriete. Maar ons het hulle omvergewerp. Gesbon is vernietig tot by Dibon. Ons het verwoesting aangerig tot by Nofag, met vuur tot by Medeba.” Israel het hom gevestig in die land van die Amoriete. Moses het mense gestuur om Jaser te verken, en hulle het Jaser en die omliggende dorpies ingeneem. Hulle het die Amoriete wat daar was, verdryf. Daarna het hulle van koers verander en in die rigting van Basan opgetrek. Og, die koning van Basan, het hulle tegemoet getrek, hy en al sy manskappe, vir 'n geveg by Edreï. Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie, want in jou hand gee Ek hom met al sy manskappe en sy land. Jy moet met hom maak wat jy gemaak het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon regeer het.” Hulle het hom, sy seuns en al sy manskappe verslaan totdat daar van hom niemand oor was wat kon ontvlug het nie. Hulle het toe sy land in besit geneem. Daarna het die Israeliete weggetrek en kamp opgeslaan in die vlaktes van Moab oorkant die Jordaan, teenoor Jerigo. Balak, seun van Sippor, het alles gesien wat Israel aan die •Amoriete gedoen het. Moab het baie bang geword vir die volk, want hulle was baie. Moab was vreesbevange vir die Israeliete. Toe sê Moab vir die oudstes van Midian: “Nou gaan hierdie horde alles rondom ons opeet, soos beeste die groen gras in die veld opvreet.” Balak, seun van Sippor, was koning van Moab in daardie tyd. Hy het boodskappers gestuur na Bileam, seun van Beor, in Petor aan die Rivier, die gebied van sy volksgenote, om hom te ontbied met die woorde: “Kyk, 'n volk het uit Egipte gekom. Die aarde is toe onder hulle en hulle is besig om hulle hier reg teenoor my te vestig. Kom asseblief dan nou en vervloek vir my hierdie volk, want hulle is te sterk vir my. Miskien is ek dan in staat om hulle te verslaan, sodat ek hulle uit die land kan verjaag. Ek weet immers dat dié wat jy seën, geseënd is, en dié wat jy vervloek, vervloek is.” Die oudstes van Moab en Midian het toe vertrek met die betaling vir waarsêery by hulle. Toe hulle by Bileam kom, het hulle Balak se woorde aan hom oorgedra. Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor, dan gee ek vir julle die antwoord wat die Here my sal meedeel.” Die •hoë amptenare van Moab het toe by Bileam oorgebly. God het na Bileam gekom en gevra: “Wie is die manne hier by jou?” Bileam het God geantwoord: “Balak, seun van Sippor, die koning van Moab het 'n boodskap vir my gestuur, ‘Kyk, die volk wat uit Egipte getrek het, die aarde is toe onder hulle. Kom dan nou en vervloek hulle vir my. Miskien is ek dan in staat om teen hulle te veg en hulle te verjaag.’ ” Maar God het vir Bileam gesê: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie. Jy mag nie die volk vervloek nie, want hulle is geseënd.” Bileam het die oggend opgestaan en vir die hoë amptenare van Balak gesê: “Gaan na julle land toe, want die Here het geweier om my toestemming te gee om saam met julle te gaan.” Die hoë amptenare van Moab het hulle gereedgemaak, na Balak gegaan en vir hom gesê: “Bileam weier om saam met ons te kom.” Balak het weer 'n keer hoë amptenare gestuur, meer en belangriker as die eerstes. Hulle het by Bileam aangekom en vir hom gesê: “So sê Balak, seun van Sippor, ‘Moet jou asseblief nie deur iets laat weerhou om na my te kom nie, want ek sal jou beslis ryklik beloon, en alles wat jy vra, sal ek doen. Kom asseblief, vervloek vir my hierdie volk.’ ” Bileam het geantwoord en vir die amptenare van Balak gesê: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, kan ek nie teen die bevel van die Here my God ingaan deur enigiets, klein of groot, te doen nie. Maar nou, bly julle ook asseblief vannag hier, sodat ek te wete kan kom wat die Here verder vir my wil sê.” God het toe in die nag na Bileam gekom en vir hom gesê: “As die manne gekom het om jou te ontbied, maak jou gereed en gaan saam met hulle; maar slegs dit wat Ek vir jou sê, moet jy doen.” Bileam het toe die oggend opgestaan, sy donkiemerrie opgesaal en saam met die hoë amptenare van Moab gegaan. Maar die toorn van God het ontbrand omdat hy op pad was. Terwyl Bileam op sy donkie ry, met twee van sy dienaars by hom, het die •Engel van die Here as sy teenstander in die pad gaan staan. Die donkie het die Engel van die Here met sy ontblote swaard in sy hand in die pad sien staan. Die donkie draai toe van die pad af en loop die veld in. Bileam het die donkie geslaan om haar na die pad te laat terugdraai. Toe gaan staan die Engel van die Here in 'n smal deurgang tussen die wingerde met 'n tuinmuur aan elke kant. Die donkie het die Engel van die Here gesien, sy het haarself teen die muur vasgedruk, en so Bileam se voet teen die muur gedruk. Hy het haar toe weer geslaan. Die Engel van die Here beweeg toe verder en gaan staan op 'n nou plek waar daar nie links of regs verbykomkans was nie. Toe die donkie die Engel van die Here sien, gaan lê sy onder Bileam. Bileam het kwaad geword en die donkie met sy stok geslaan. Toe maak die Here die donkie se mond oop en sy sê vir Bileam: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou drie keer geslaan het?” Daarop sê Bileam vir die donkie: “Omdat jy my vir die gek hou! Was daar maar 'n swaard in my hand, want dan het ek jou nou doodgemaak!” Die donkie sê toe vir Bileam: “Is ek nie jou donkie waarop jy jou lewe lank tot vandag toe gery het nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te maak?” Hy antwoord: “Nee.” Die Here maak toe Bileam se oë oop, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand. Bileam het gekniel en met sy gesig teen die grond gebuig. Die Engel van die Here het hom gevra: “Waarom het jy jou donkie nou drie maal geslaan? Kyk, Ek het self na vore getree as 'n teenstander, want die pad wat voorlê, is steil. Die donkie het My gesien en nou drie keer vir My uitgedraai. As sy nie van My af weggedraai het nie, sou Ek jóú nou doodgemaak het, maar haar laat leef het.” Daarop sê Bileam vir die Engel van die Here: “Ek het gesondig, want ek het nie besef dat dit U is wat teenoor my in die pad staan nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek graag omdraai.” Die Engel van die Here sê toe vir Bileam: “Gaan saam met die manne; maar die woord wat Ek vir jou sê, slegs dit mag jy sê.” Bileam het toe saam met die hoë amptenare van Balak gegaan. Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy uitgegaan om hom te ontmoet by die Moabitiese dorp wat op die Arnongrens lê, aan die grens van sy grondgebied. Balak het vir Bileam gesê: “Het ek nie aanhoudend mense na jou gestuur om jou na my te ontbied nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te beloon nie?” Bileam het vir Balak gesê: “Kyk, ek het na u toe gekom. Maar nou, kan ek hoegenaamd uit myself enigiets sê? Die woord wat God in my mond lê, net dit mag ek sê.” Bileam het toe saam met Balak gegaan en hulle het by Kirjat-Gusot gekom. Balak het beeste en kleinvee geslag en dit vir Bileam en die leiers by hom gestuur. Die volgende môre het Balak vir Bileam geneem en hy het hom die berg Bamot-Baäl laat uitklim. Daarvandaan het Bileam 'n deel van die volk gesien. Bileam sê toe vir Balak: “Bou vir my hier sewe altare en offer vir my hier sewe bulle en sewe ramme.” Balak het gedoen wat Bileam versoek het. Balak en Bileam het 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer. Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier by u •brandoffer staan terwyl ek 'n entjie loop. Miskien gun die Here my 'n ontmoeting. Wat Hy my ook al laat sien, sal ek aan u bekend maak.” Daarna het hy na 'n kaal hoogte gestap. God het Bileam toe ontmoet. Bileam het vir Hom gesê: “Die sewe altare het ek gereedgemaak, en ek het 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.” Die Here het toe 'n woord in die mond van Bileam gelê en gesê: “Gaan terug na Balak. Dit is wat jy moet sê.” Hy het na Balak toe teruggegaan. Daar staan Balak toe nog steeds by sy brandoffers, hy en al die •hoë amptenare van Moab. Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Uit Aram laat hy my haal, Balak, die koning van Moab, uit die bergland in die ooste. ‘Kom vervloek vir my Jakob, kom verwens Israel.’ Hoe kan ek vervloek vir wie God nie vervloek nie? En hoe kan ek verwens vir wie die Here nie verwens nie? Ja, bo van die rotse af sien ek hulle, en vanaf die heuwels neem ek hulle waar. Kyk, dit is 'n volk wat afgesonderd woon; onder die nasies reken hy homself nie. Wie kan die stof van Jakob tel, die getal bereken van die stofwolk van Israel? Mag ek die dood van die opregtes sterf, mag my einde soos hulle s'n wees!” Balak het vir Bileam gesê: “Wat het jy my aangedoen? Om my vyande te vervloek, is waarvoor ek jou laat haal het; maar kyk, jy seën net.” Bileam het daarop gereageer en gesê: “Moet ek nie dit wat die Here in my mond lê, noukeurig nasê nie?” Toe sê Balak vir hom: “Kom asseblief saam met my na 'n ander plek, waarvandaan jy slegs 'n deel van hulle sal sien. Die hele volk sal jy nie kan sien nie. Vervloek hulle dan vir my daarvandaan.” Hy neem hom toe na die oop stuk grond van Sofim, op die kruin van Pisga. Hy het sewe altare gebou en 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer. Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier staan by jou brandoffer, maar ek sal daar gereedstaan vir 'n ontmoeting.” Die Here het Bileam ontmoet, 'n woord in sy mond gelê en vir hom gesê: “Gaan terug na Balak. Dit is wat jy moet sê.” Toe hy by Balak kom, staan hy nog daar by sy brandoffer, met die hoë amptenare van Moab by hom. Balak vra hom: “Wat het die Here gesê?” Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Staan op Balak, en luister! Gee aandag aan wat ek sê, seun van Sippor. God is nie 'n man, dat Hy sou lieg nie, en nie 'n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie? Kyk, om te seën is die opdrag wat ek ontvang het. Hy het geseën, en ek kan dit nie omkeer nie. Onheil is nie in sig vir Jakob nie, en teenspoed is nie in die vooruitsig vir Israel nie. Die Here sy God is by hom, die gejubel oor 'n Koning klink in hom op. God, wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, is soos die horings van 'n buffel vir hom. Want daar is nie voorspelling in Jakob, en waarsêery in Israel nie. Nou moet daar gesê word vir Jakob, vir Israel, wat God gedoen het, ‘Kyk, 'n volk staan op soos 'n leeuwyfie, soos 'n leeu kom hy orent. Hy gaan lê nie totdat hy sy prooi verslind het nie, die bloed van wat doodgemaak is, nie gedrink het nie.’ ” Balak sê toe vir Bileam: “Moet dan nie 'n vervloeking nie, maar ook nie 'n seën oor hulle uitspreek nie.” Bileam het daarop gereageer en vir Balak gesê: “Het ek nie vir u gesê nie, ‘Alles wat die Here sê, dit sal ek doen’?” Toe sê Balak vir Bileam: “Kom asseblief; ek vat jou na 'n ander plek toe. Miskien sal dit reg wees in God se oë dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.” Balak vat toe vir Bileam na die kruin van Peor, wat 'n uitsig bied oor die wildernis. Bileam het vir Balak gesê: “Bou vir my hier sewe altare en offer vir my hier sewe bulle en sewe ramme.” Balak het gedoen wat Bileam gesê het. Hy het 'n bul en 'n ram geoffer op elke altaar. Bileam het egter gesien dat dit goed is in die oë van die Here om Israel te seën. Hy het nie soos die vorige kere na voortekens vir voorspellings gaan soek nie. Hy het sy gesig na die woestyn gedraai. Toe Bileam rondkyk en Israel sien, tydelik gevestig volgens sy stamme, het die Gees van God oor hom gekom. Hy het sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Die uitspraak van Bileam, seun van Beor; ja, die uitspraak van die man met die geopende oog, die uitspraak van hom wat die woorde van God hoor, hy wat die Almagtige se visioene sien, wat neerval met geopende oë, ‘Hoe mooi is jou tente, Jakob, jou wonings, Israel! Soos palmbome is hulle uitgesprei, soos tuine langs 'n rivier, soos adelhout wat die Here geplant het, soos seders langs water. Water loop uit Israel se leersak; sy saad kry oorvloedig water. Sy koning styg uit bo Agag, en sy heerskappy sal verhewe wees. God wat hom uit Egipte uitgelei het, is soos die horings van 'n buffel vir hom. Israel verslind nasies, sy teenstanders; aan hulle beendere knaag hy; met sy pyle verpletter hy. Hy hurk, gaan lê soos 'n leeu, ja, soos 'n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën. Vervloek is hulle wat jou vervloek.’ ” Balak het kwaad geword vir Bileam. Hy het sy handpalms teen mekaar geslaan en vir Bileam gesê: “Om my vyande te vervloek, is waarvoor ek jou laat roep het; en kyk, jy het hulle nou al drie keer net geseën. Maak dan nou dat jy wegkom na jou plek! Ek het gesê ek sal jou ryklik beloon; maar kyk, die Here het jou van beloning weerhou.” Bileam het vir Balak gesê: “Het ek nie reeds vir u boodskappers wat u na my gestuur het, gesê, ‘Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, kan ek nie teen die bevel van die Here ingaan deur enigiets, goed of kwaad, uit my eie te doen nie. Wat die Here sê, dit sal ek sê.’ En nou, kyk, ek is reeds op pad na my volk toe. Maar kom, laat ek u inlig oor wat hierdie volk in die toekoms aan u volk gaan doen.” Hy het sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Die uitspraak van Bileam, seun van Beor, ja, die uitspraak van die man met die geopende oog, die uitspraak van hom wat die woorde van God hoor, hy wat bekend is met die Allerhoogste se kennis, wat die Almagtige se visioene sien, wat neerval met geopende oë, ‘ Ek sien hom, maar dit is nie nou nie, ek neem hom waar, maar hy is nie naby nie. 'n Ster uit Jakob tree na vore, 'n heerserstaf uit Israel verskyn; hy verbrysel die slape van Moab, en vernietig al die kinders van Set. Edom word 'n besitting, ja, Seïr, sy vyande, word 'n besitting, maar Israel word al sterker. Hy sal heers uit Jakob; wie uit die stad ontvlug, bring hy om.’ ” Bileam het Amalek gesien, sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Die vernaamste onder die nasies is Amalek, maar sy uiteinde is ondergang.” Bileam het die Keniete gesien, sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Bestendig is jou woonplek, op 'n rots is jou nes gebou; maar Kain is bestem vir vernietiging. Hoe lank nog? Assur sal jou in ballingskap wegvoer.” Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê: “Helaas, wie sal oorleef sonder dat God dit beskik? Skepe van die kus van die Kittiërs – hulle verneder Assur, en hulle verneder Heber; maar ook hulle is bestem vir ondergang.” Toe het Bileam opgestaan en weggegaan; hy het na sy plek teruggekeer. Ook Balak het sy koers gegaan. Terwyl Israel in Sittim oorgebly het, het die volk begin om met Moabitiese vroue te hoereer. Die vroue het die volk na die offers van hulle gode genooi, en die volk het van die offers geëet en voor hulle gode in aanbidding gebuig. Toe Israel homself aan Baäl-Peor verbind, het die toorn van die Here teen Israel ontbrand. Die Here het vir Moses gesê: “Neem al die leiers van hierdie mense en hang hulle in die son aan pale, vir die Here, sodat die brandende toorn van die Here van Israel afgeweer word.” Moses het vir die regters van Israel gesê: “Elkeen van julle moet sy manne wat hulle aan Baäl-Peor verbind het, doodmaak.” Juis toe kom 'n Israelitiese man en bring 'n Midianitiese vrou na sy volksgenote – en dit voor die oë van Moses en die hele volksvergadering van die Israeliete, terwyl hulle by die ingang van die •Tent van Ontmoeting staan en huil. Toe Pinehas, seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, dit sien, het hy daar in die volksvergadering opgestaan en 'n steekspies gevat. Hy het agter die Israelitiese man in die vrouetent ingegaan, en hy het al twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, tot in haar maag. Die plaag onder die Israeliete het toe opgehou. Dié wat deur die plaag gesterf het, was vier-en-twintigduisend. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Pinehas, seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my woede van die Israeliete weggekeer deurdat hy onder hulle sy ywer getoon het vir my heilige jaloesie, sodat Ek nie die Israeliete in my heilige jaloesie vernietig het nie. Sê daarom, ‘Kyk, Ek bied vir hom my verbond van vrede aan. Dit sal vir hom en sy nageslag ná hom 'n verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy ywer vir sy God getoon het en versoening gedoen het vir die Israeliete.’ ” Die naam van die Israelitiese man wat doodgemaak is, wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri, seun van Salu, 'n leier uit die familie van Simeon. Die naam van die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi, dogter van Sur. Hy was die stamhoof van 'n familie in Midian. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Beskou die Midianiete as vyande en maak hulle dood, want hulle het teenoor julle vyandig opgetree deur die slinkse planne wat hulle teen julle gesmee het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, hulle landgenoot, die dogter van die Midianitiese leier – sy wat doodgemaak is op die dag van die plaag wat gevolg het op die gebeure by Peor.” Ná die plaag het die Here vir Moses en Eleasar, seun van die priester Aäron, gesê: “Hou 'n hoofdelike telling van die hele volksvergadering van die Israeliete, twintig jaar en ouer, volgens hulle families, elke weerbare man in Israel.” Moses en die priester Eleasar het toe met hulle gepraat in die vlaktes van Moab by die Jordaan, teenoor Jerigo en gesê: “Van twintig jaar en ouer moet getel word, soos die Here Moses beveel het.” Die Israeliete wat uit Egipteland weggetrek het, was: Ruben, die eersgeborene van Israel. Die nageslag van Ruben: van Ganog, die Ganog-familiegroep; van Pallu, die Pallu-familiegroep; van Gesron, die Gesron-familiegroep; van Karmi, die Karmi-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Ruben afgestam het. Dié wat ingeskryf is, was 43 730. Die nageslag van Pallu was Eliab; en die seuns van Eliab was Nemuel, Datan en Abiram. Dit is dieselfde Datan en Abiram wat na die volksvergadering opgeroep is, en wat hulle teen Moses en Aäron verset het as deel van die bende van Korag toe dié hulle teen die Here verset het. Die aarde het sy mond oopgemaak en hulle en ook Korag verswelg toe die bende gesterf het, toe die vuur die 250 man verteer en hulle 'n waarskuwingsteken geword het. Die seuns van Korag het egter nie gesterf nie. Die nageslag van Simeon, volgens hulle familiegroepe: van Nemuel, die Nemuel-familiegroep; van Jamin, die Jamin-familiegroep; van Jagin, die Jagin-familiegroep; van Serag, die Serag-familiegroep; van Saul, die Saul-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Simeon afgestam het. Hulle was 22 200. Die nageslag van Gad, volgens hulle familiegroepe: van Sifjon, die Sifjon-familiegroep; van Gaggi, die Gaggi-familiegroep; van Suni, die Suni-familiegroep; van Osni, die Osni-familiegroep; van Eri, die Eri-familiegroep; van Arod, die Arod- familiegroep; van Areli, die Areli-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Gad afgestam het, volgens die wat ingeskryf is. Hulle was 40 500. Die nageslag van Juda: Er en Onan, maar Er en Onan het in die land Kanaän gesterf. Die nageslag van Juda volgens hulle familiegroepe: van Sela, die Sela-familiegroep; van Peres, die Peres-familiegroep; van Serag, die Serag-familiegroep. Die nageslag van Peres was: van Gesron, die Gesron-familiegroep; van Gamul, die Gamul-familiegroep. Dit was die familiegroepe van Juda, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 76 500. Die nageslag van Issaskar, volgens hulle familiegroepe: van Tola, die Tola-familiegroep; van Puwwa, die Puni-familiegroep; van Jasub, die Jasub-familiegroep; van Simron, die Simron-familiegroep. Dit was die familiegroepe van Issaskar, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 64 300. Die nageslag van Sebulon, volgens hulle familiegroepe: van Sered, die Sered-familiegroep; van Elon die Elon-familiegroep; van Jagleël die Jagleël-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Sebulon afgestam het, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 60 500. Die nageslag van Josef volgens hulle familiegroepe: Manasse en Efraim. Die nageslag van Manasse: van Magir, die Magir-familiegroep; Magir het Gilead verwek – van Gilead, die Gilead-familiegroep. Dit was die nageslag van Gilead: van Iëser, die Iëser-familiegroep; van Gelek, die Gelek-familiegroep; van Asriël, die Asriël-familiegroep; van Segem, die Segem-familiegroep; van Semida, die Semida-familiegroep; van Gefer, die Gefer-familiegroep. Selofgad, seun van Gefer, het nie seuns gehad nie, net dogters. Die name van Selofgad se dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Dit was die familiegroepe van Manasse volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 52 700. Dit was die nageslag van Efraim volgens hulle familiegroepe: van Sutelag, die Sutelag-familiegroep; van Beger, die Beger-familiegroep; van Tagan, die Tagan-familiegroep. En dit was die nageslag van Sutelag: van Eran, die Eran- familiegroep. Dit was die familiegroepe van die nageslag van Efraim volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 32 500. Dit was dan die nageslag van Josef volgens hulle familiegroepe. Die nageslag van Benjamin volgens hulle familiegroepe: Van Bela, die Bela-familiegroep; van Asbel, die Asbel-familiegroep; van Agiram, die Agiram-familiegroep; van Sefufam, die Sefufam-familiegroep; van Gufam, die Gufam-familiegroep. En die seuns van Bela was Ard en Naäman; van Ard, die Ard-familiegroep; van Naäman, die Naäman-familiegroep. Dit was die nageslag van Benjamin volgens hulle familiegroepe, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 45 600. Dit was die nageslag van Dan volgens hulle familiegroepe: Van Sugam, die Sugam-familiegroep. Dit was die familiegroepe van Dan. Al die familiegroepe was van die Sugamgroep, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 64 400. Die nageslag van Aser volgens hulle familiegroepe: van Jimna, die Jimna-familiegroep; van Jiswi, die Jiswi-familiegroep; van Beria, die Beria-familiegroep. Wat die nageslag van Beria betref: van Geber, die Geber-familiegroep; van Malkiël, die Malkiël-familiegroep. Die naam van Aser se dogter was Serag. Dit was die familiegroepe van die nageslag van Aser, volgens dié wat ingeskryf is. Hulle was 53 400. Die nageslag van Naftali volgens hulle familiegroepe: van Jagseël, die Jagseël-familiegroep; van Guni, die Guni-familiegroep; van Jeser, die Jeser-familiegroep; van Sillem, die Sillem-familiegroep. Dit was die familiegroepe van Naftali volgens hulle families; en dié wat ingeskryf is, was 45 400. Dit was die getal van die wat ingeskryf is van die Israeliete: 601 730. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Onder hierdie mense moet die land met erfreg verdeel word volgens die getal name. Vir dié wat meer is, moet jy hulle erfdeel vergroot; vir dié wat minder is, moet jy hulle erfdeel verklein. Aan elkeen moet sy erfdeel gegee word volgens die getal van dié wat ingeskryf is. Maar die land moet deur loting verdeel word. Volgens die name van hulle voorouers se stamme moet hulle dit as erfenis ontvang. Deur loting moet 'n stam se erfdeel toegewys word, tussen dié wat baie en dié wat min is.” Dit was dié wat ingeskryf is van die Leviete volgens hulle familiegroepe: van Gerson, die Gerson-familiegroep; van Kehat, die Kehat-familiegroep; van Merari, die Merari-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Levi afgestam het: die Libni-familiegroep; die Hebron-familiegroep; die Magli-familiegroep; die Musi-familiegroep en die Korag-familiegroep. Kehat het Amram verwek. Die naam van Amram se vrou was Jogebed, 'n dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is. Vir Amram het sy Aäron, Moses en Mirjam, hulle suster, in die wêreld gebring. Vir Aäron is Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar gebore. Nadab en Abihu het gesterf toe hulle ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring het. Dié wat ingeskryf is van die Leviete, al die manlike persone, een maand en ouer, was 23 000. Hulle is immers nie saam met die Israeliete ingeskryf nie, omdat daar nie vir hulle 'n erfdeel gegee is tussen die Israeliete nie. Dit was dié wat ingeskryf is deur Moses en die priester Eleasar, wat die Israeliete in die vlaktes van Moab by die Jordaan, teenoor Jerigo, ingeskryf het. Onder hulle was daar egter nie een van dié wat deur Moses en die priester Aäron ingeskryf is toe hulle die Israeliete in die Sinaiwoestyn ingeskryf het nie. Omdat die Here vir hulle gesê het dat hulle beslis sal sterf in die woestyn, het nie een van hulle oorgebly nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun. Die dogters van Selofgad – hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, van die Manasse-familiegroep – het na vore getree. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, seun van Josef. Hulle het voor Moses, die priester Eleasar, die leiers en die hele volksvergadering by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan en gesê: “ Ons vader is oorlede in die woestyn. Hy was egter nie onder die bende nie – daardie bende van Korag wat teen die Here saamgespan het. Maar deur sy eie sonde het hy gesterf, en hy het nie seuns gehad nie. Waarom moet ons vader se naam verdwyn uit sy familiegroep omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons erfgrond tussen ons vader se broers.” Moses het hulle saak toe voor die Here gebring. Die Here het vir Moses gesê: “ Die dogters van Selofgad se versoek is billik. Jy moet beslis vir hulle onvervreembare erfgrond gee tussen hulle vader se broers. Jy moet hulle vader se erfdeel na hulle laat oorgaan. Met die Israeliete moet jy praat en sê, ‘As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy erfdeel na sy dogter laat oorgaan. En as hy nie 'n dogter het nie, moet julle sy erfdeel vir sy broers gee. En as hy nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy vader se broers gee. En as sy vader nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy bloedverwant gee wat die naaste aan hom is in sy familiegroep. Hy moet dit dan in besit neem. Dit moet vir die Israeliete 'n wetlike voorskrif wees, soos die Here Moses beveel het.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen hierdie Abarimberge op en kyk na die land wat ek vir die Israeliete gegee het. Wanneer jy dit gesien het, sal ook jy, soos jou broer Aäron, met jou mense verenig word, aangesien julle in die Tsinwoestyn, toe die volksvergadering in opstand was, my bevel om my heiligheid voor hulle oë te erken, verontagsaam het met die gee van water. Dit was by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn.” Moses het met die Here gepraat en gesê: “ Mag die Here, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, 'n man oor die volksvergadering aanstel wat voor hulle uit kan trek en voor hulle kan ingaan, ja, wat hulle kan uitlei en wat hulle kan teruglei, sodat die volksvergadering van die Here nie soos kleinvee sonder 'n herder is nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Neem Josua, seun van Nun, 'n man met geesdrif, en lê jou hande op hom. Laat hom voor die priester Eleasar staan en voor die hele volksvergadering, en gee hom voor hulle oë sy opdragte. Dra van jou gesag oor op hom, sodat die hele volksvergadering van die Israeliete na hom sal luister. Maar by die priester Eleasar moet hy aanmeld, sodat dié vir hom deur die beslissing van die Urim by die Here navraag kan doen. Op sy bevel moet hulle vir 'n geveg uittrek, en op sy bevel moet hulle terugkeer, hy en al die Israeliete saam met hom, die hele volksvergadering.” Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleasar en die hele volksvergadering laat staan. Hy het sy hande op hom gelê en hom sy opdragte gegee, soos wat die Here by monde van Moses gesê het. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Gee aan die Israeliete opdragte en sê vir hulle, ‘Wat my offers betref: Let nougeset daarop om op die vasgestelde tyd my voedsel, my offergawes, as 'n geur wat My behaag, vir My aan te bied.’ Sê vir hulle, ‘Dit is die offergawe wat julle vir die Here moet aanbied: twee jaaroud ramlammers sonder gebrek, daagliks as 'n gereelde •brandoffer. Een ramlam moet jy in die oggend offer en die tweede ramlam teen laatmiddag en 'n tiende van 'n efa gesifte meel as •graanoffer, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie. Dit is die gereelde brandoffer wat op die berg Sinai gebring is as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. Die bypassende •drankoffer is 'n kwart hin saam met die eerste ramlam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank vir die Here uitgiet. Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend, moet jy dit offer en die bypassende drankoffer as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. ’ ” “ ‘ Op die Sabbatdag moet twee jaaroud ramlammers sonder gebrek en twee tiendes van 'n efa gesifte meel as graanoffer, gemeng met olyfolie en die bypassende drankoffer, gebring word – 'n brandoffer op elke Sabbatdag, by die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer. “ ‘Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here 'n brandoffer aanbied: twee jong bulle en een ram, asook sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek; drie tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as •graanoffer by elke bul en twee tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ram; 'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ramlam. Dit is 'n brandoffer met 'n aangename geur, 'n offergawe aan die Here. Die bypassende drankoffers is 'n halwe hin wyn vir 'n bul, 'n derde hin vir 'n ram en 'n kwart hin vir 'n ramlam. Dit is die brandoffer met elke nuwemaan, vir al die maande van die jaar. Een bokram moet as •reinigingsoffer vir die Here gebring word, naas die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer.’ ” “ ‘ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is dit die Pasga van die Here. Op die vyftiende dag van dieselfde maand is daar 'n fees – sewe dae lank moet ongesuurde brood geëet word. Op die eerste dag moet daar 'n heilige byeenkoms wees. Julle mag geen gewone take verrig nie. Julle moet 'n offergawe, 'n brandoffer, vir die Here aanbied: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud ramlammers. Hulle moet sonder gebrek wees. Die bypassende •graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie, moet julle ook bring: drie tiendes van 'n efa vir die bul en twee tiendes van 'n efa vir die skaapram. 'n Tiende van 'n efa moet jy offer vir elkeen van die sewe ramlammers, dan ook nog een bokram as reinigingsoffer om vir julle versoening te doen. Afgesien van die brandoffer in die oggend, wat die gereelde brandoffer is, moet julle hierdie offers bring. Op dié wyse moet julle elke dag, sewe dae lank, voedsel offer, 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. By die gereelde brandoffer en die bypassende drankoffer moet julle dit offer. Op die sewende dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. “ ‘Op die dag van die eerste opbrengs van die oes, wanneer julle 'n graanoffer van die nuwe oes vir die Here aanbied tydens julle Fees van die Weke, moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Julle moet as 'n brandoffer, as 'n geurige offer vir die Here, twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud ramlammers, aanbied, met die bypassende graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie: drie tiendes van 'n efa vir elke bul, twee tiendes van 'n efa vir die een ram, 'n tiende van 'n efa vir elkeen van die sewe ramlammers, en dan ook nog een bokram om vir julle versoening te doen. Afgesien van die gereelde brandoffer en die bypassende graanoffer, moet julle dit met bypassende drankoffers bring. Hulle moet sonder gebrek wees.’ ” “ ‘ In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Dit moet vir julle 'n dag wees waarop op •ramshorings geblaas word. Julle moet •brandoffers bring as aangename geur vir die Here: een jong bul, een ram en sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek, met die bypassende •graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie: drie tiendes van 'n efa vir die bul, twee tiendes van 'n efa vir die ram en 'n tiende van 'n efa vir elk van die sewe ramlammers. Offer ook een bokram as •reinigingsoffer om vir julle versoening te doen – afgesien van die brandoffer met nuwemaan en bypassende graanoffer, die gereelde brandoffer en bypassende graanoffer, en al die bypassende •drankoffers soos voorgeskryf, as 'n aangename geur, 'n offergawe aan die Here. “ ‘ Op die tiende van hierdie sewende maand moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig, en geen werk mag julle doen nie. Julle moet dan 'n brandoffer vir die Here aanbied as 'n geurige offer: een jong bul, een ram en sewe jaaroud ramlammers – sonder gebrek moet hulle wees – en die bypassende graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie: drie tiendes van 'n efa vir die bul, twee tiendes van 'n efa vir die een ram, 'n tiende van 'n efa vir elk van die sewe ramlammers. Offer ook een bokram as reinigingsoffer, afgesien van die reinigingsoffer vir die versoening, by die gereelde brandoffer, met sy bypassende graanoffer en al die bypassende drankoffers. “ ‘ Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Julle moet sewe dae lank feesvier ter ere van die Here. Julle moet 'n brandoffer, 'n offergawe met 'n aangename geur vir die Here, aanbied: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud ramlammers, sonder gebrek moet hulle wees, en die bypassende graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie: drie tiendes van 'n efa vir elkeen van die dertien bulle, twee tiendes van 'n efa vir elkeen van die twee ramme, en 'n tiende van 'n efa vir elkeen van die veertien ramlammers. Offer ook een bokram as reinigingsoffer, afgesien van die gereelde brandoffer en die bypassende graan- en drankoffer. “ ‘Op die tweede dag is dit twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en al die bypassende drankoffers. “ ‘Op die derde dag is dit elf bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek, met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en drankoffer. “ ‘Op die vierde dag is dit tien bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en drankoffer. “ ‘Op die vyfde dag is dit nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek, met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en drankoffer. “ ‘Op die sesde dag is dit agt bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer en die bypassende graanoffer en drankoffers. “ ‘Op die sewende dag is dit sewe bulle, twee ramme en veertien jaaroud ramlammers sonder gebrek, met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bulle, die ramme en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en drankoffer. “ ‘Die agtste dag moet vir julle 'n gewyde rusdag wees. Julle mag geen gewone take verrig nie. Julle moet 'n brandoffer, 'n offergawe met 'n aangename geur vir die Here, aanbied: een bul, een ram en sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek, met die bypassende graanoffer en drankoffers vir die bul, die ram en die ramlammers, met die hoeveelhede soos voorgeskryf, asook een bokram as reinigingsoffer – dit is afgesien van die gereelde brandoffer met sy bypassende graanoffer en drankoffer. “ ‘Dit is wat julle, afgesien van julle gelofte-offers en julle vrywillige gawes, vir die Here moet offer op julle vasgestelde feestye, naamlik julle •brandoffers, julle graanoffers, julle drankoffers en julle •maaltydoffers.’ ” Moses het vir die Israeliete gesê net soos die Here beveel het. Moses het met die stamhoofde van die Israeliete gepraat en gesê: “Dit is wat die Here beveel het: As 'n man aan die Here 'n gelofte aflê, of as hy 'n eed aflê om te hou by 'n onderneming wat hy gegee het, mag hy sy belofte nie verbreek nie. Alles wat oor sy lippe gekom het, moet hy doen. “Wanneer 'n vrou 'n gelofte aan die Here aflê en haar in haar jeug aan die onthouding van iets bind terwyl sy in die huis van haar vader is, en haar vader hoor van haar gelofte en die verpligting tot onthouding wat sy op haarself geneem het, maar haar vader bly stil teenoor haar, dan geld al haar geloftes; en elke verbintenis wat sy op haarself geneem het, geld. “Maar as haar vader teenoor haar sy afkeuring uitspreek op die dag wat hy daarvan hoor, is al haar geloftes en verpligtinge wat sy op haarself geneem het, nie geldig nie. Die Here sal haar vergewe, omdat haar vader sy afkeuring teenoor haar uitgespreek het. “ As sy wel aan 'n man afgestaan word terwyl haar geloftes of 'n onbesonne uitspraak waarmee sy 'n verpligting op haar geneem het, nog op haar rus, en haar man daarvan hoor en teenoor haar stilbly op die dag wat hy daarvan hoor, dan bly haar geloftes geldig. Die verpligtinge wat sy op haarself geneem het, geld steeds. Maar as haar man teenoor haar sy afkeuring uitspreek op die dag wat hy daarvan hoor, dan maak hy die gelofte wat op haar rus en die onbesonne uitspraak waarmee sy haarself gebind het, ongeldig; en die Here sal haar vergewe. “Wat betref die gelofte van 'n weduwee of vrou wat verstoot is: Alles wat sy op haarself geneem het, bly vir haar geldig. “ As 'n vrou in die huis van haar man 'n gelofte aflê of haarself met 'n eed verbind, en haar man hoor daarvan en hy bly stil teenoor haar, hy spreek nie sy afkeuring teenoor haar uit nie, dan geld al haar geloftes, ja, elke verpligting wat sy op haar geneem het, bly geldig. Maar as haar man dit uitdruklik ongeldig verklaar die dag wat hy dit hoor, sal alles wat oor haar lippe kom – haar geloftes en haar selfverpligting – nie geld nie. Haar man het dit ongeldig gemaak, en die Here sal haar vergewe. Enige gelofte of enige eed wat haar verplig tot verootmoediging – haar man kan dit geldig verklaar of haar man kan dit ongeldig verklaar. As haar man tot die volgende dag doodstil bly teenoor haar, dan maak hy al haar geloftes, of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, geldig, omdat hy stilgebly het teenoor haar op die dag wat hy dit gehoor het. Maar as hy dit uitdruklik ongeldig verklaar nadat hy dit gehoor het, dan sal hy haar skuld dra.” Dit is die vaste voorskrifte wat die Here Moses beveel het met betrekking tot 'n man en sy vrou, en 'n vader en sy dogter terwyl sy in haar jeug nog in haar vader se huis is. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Vergeld die onreg wat die Israeliete aangedoen is deur die Midianiete. Daarna sal jy met jou mense verenig word.” Moses het toe met die volk gepraat en gesê: “Van die manne onder julle moet hulleself bewapen vir die stryd, sodat hulle teen Midian kan optrek om die vergelding van die Here oor Midian te voltrek. 'n Duisend man uit elkeen van die stamme van Israel moet julle stuur vir die stryd.” Uit die leërafdelings van Israel is 'n duisend man per stam gekies – twaalfduisend wat gewapen was vir oorlog. Moses het hulle, die duisend uit elke stam, gestuur op die veldtog, hulle en Pinehas, seun van die priester Eleasar. Vir die veldtog het Pinehas die heilige voorwerpe en die trompette vir die waarskuwingsein by hom gehad. Hulle het teen Midian gaan veg, soos die Here Moses beveel het, en al die manlike persone doodgemaak. Hulle het selfs die konings van Midian doodgemaak. Onder die gesneuweldes was Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, die vyf konings van Midian. Ook Bileam, seun van Beor, het hulle met die swaard doodgemaak. Maar die Israeliete het die vroue van Midian en hulle kinders gevange geneem. Al hulle diere, al hulle lewende hawe en al hulle besittings het hulle buitgemaak. Al hulle dorpe waarin hulle gewoon het en al hulle kampe het die Israeliete verbrand, maar alles wat gestroop is en al die oorlogsbuit, mense en diere, het hulle saamgevat. Hulle het die gevangenes, die oorlogsbuit en alles wat gestroop is, na Moses, die priester Eleasar en die volksvergadering van die Israeliete gebring in die kamp, in die vlaktes van Moab by die Jordaan, teenoor Jerigo. Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die volksvergadering het uitgegaan om hulle buite die kamp te ontmoet. Moses het hom bloedig vererg vir die bevelvoerders van die leër, die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, wat van die militêre veldtog teruggekeer het. Moses het vir hulle gesê: “Het julle die vroue almal laat lewe? Kyk, dit is juis hulle wat, op advies van Bileam, met die gebeure by Peor, vir die Israeliete die rede geword het om ontrou te bedryf teenoor die Here, sodat daar 'n plaag in die volksvergadering van die Here uitgebreek het. Maak dan nou elke manlike kind dood. Maak ook elke vrou dood wat met 'n man gemeenskap gehad het, maar spaar vir julleself al die meisies wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Almal van julle wat iemand doodgemaak het, en almal wat aan 'n gesneuwelde geraak het, moet sewe dae lank buite die kamp tent opslaan. Op die derde en op die sewende dag moet julle julleself reinig – julle en julle gevangenes. Elke kledingstuk, elke artikel van leer, alles wat van bokhaar gemaak is en elke artikel van hout moet julle reinig.” Die priester Eleasar het vir die krygsmanne wat oorlog toe gegaan het, gesê: “Die volgende is 'n vaste wetlike voorskrif wat die Here Moses gegee het, ‘Net die goud en silwer, die brons, yster, tin en lood – elke voorwerp wat teen vuur bestand is – moet julle deur die vuur laat gaan; dan sal dit rein wees. Maar dit moet ook met reinigingswater gereinig word. Ook alles wat nie vuurbestand is nie, moet julle deur die water laat gaan. Julle moet julle klere op die sewende dag was, dan sal julle rein wees. Daarna kan julle in die kamp inkom.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Stel 'n lys saam van die oorlogsbuit – van die mense en diere wat gevange geneem is – jy en die priester Eleasar, asook die familiehoofde van die volksvergadering. Verdeel dan die oorlogsbuit in die helfte tussen dié wat in die geveg betrokke was, wat uitgetrek het vir die stryd, en die hele volksvergadering. Vorder vir die Here 'n bydrae in van die krygsmanne wat uitgetrek het vir die stryd: een uit elke vyfhonderd van die mense, van die beeste, van die donkies en van die kleinvee. Uit húlle helfte moet julle dit neem en dit vir die priester Eleasar gee, as 'n •wydingsgeskenk vir die Here. Uit die helfte-aandeel van die Israeliete, moet jy een uit vyftig neem van die mense, die beeste, die donkies, die kleinvee, van al die diere. Jy moet dit vir die Leviete gee wat hulle verpligtinge by die •tabernakel van die Here nakom.” Moses en die priester Eleasar het toe gedoen wat die Here Moses beveel het. Die oorlogsbuit wat nog oor was van die goedere wat die manskappe geroof het, was: 675 000 stuks kleinvee, 72 000 beeste, 61 000 donkies. En wat die mense betref: Van die vroue wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie, was daar 32 000. Die helfte, die deel van dié wat aan die stryd deelgeneem het, se getalle was: kleinvee – 337 500, en die bydrae vir die Here uit die kleinvee was 675; beeste – 36 000, en die bydrae vir die Here was 72; donkies – 30 500, en die bydrae vir die Here was 61; mense – 16 000, en die bydrae vir die Here was 32 persone. Moses het die bydrae, die wydingsgeskenk aan die Here, vir die priester Eleasar gegee, soos die Here Moses beveel het. Wat betref die helfte-aandeel van die Israeliete, dit wat Moses van die manne wat gaan veg het, eenkant gehou het: Die helfte-aandeel van die volksvergadering was: 337 500 stuks kleinvee, 36 000 beeste, 30 500 donkies en 16 000 mense. Moses het uit die helfte-aandeel van die Israeliete, dit wat teruggehou is, een uit vyftig van die mense en van die diere geneem en hulle vir die Leviete gegee wat verpligtinge nagekom het by die tabernakel van die Here, soos wat die Here Moses beveel het. Die bevelvoerders wat oor die leërafdelings was, die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, het Moses genader en vir hom gesê: “U dienaars het 'n hoofdelike telling gehou van die krygsmanne wat onder ons bevel staan, en nie een van hulle word vermis nie. Daarom bied elkeen van ons wat goue voorwerpe gevind het, 'n offergawe vir die Here aan – armkettinkies, armbande, ringe, oorringe en halskettings – om voor die Here vir ons lewens versoening te doen. ” Moses en die priester Eleasar het die goud van hulle geneem, al die smeewerk. Al die goud van die wydingsgeskenk wat hulle aan die Here afgestaan het, was 16 750 sikkel. Dit was afkomstig van die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd. Die krygsmanne het elkeen vir homself ook buit geneem. Moses en die priester Eleasar het die goud in ontvangs geneem van die aanvoerders van duisend en van honderd. Hulle het dit in die Tent van Ontmoeting ingeneem om voor die Here te dien as 'n herinnering aan die Israeliete. Die nageslag van Ruben en Gad het baie vee gehad, besonder baie. Toe hulle die landstreek Jaser en die landstreek Gilead sien – en kyk, die gebied was 'n plek vir vee – het die nageslag van Gad en die nageslag van Ruben gekom en vir Moses, die priester Eleasar en die leiers van die volksvergadering gesê: “Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Beon, die gebied wat die Here voor die oë van die volksvergadering van Israel vernietig het, dit is 'n land vir vee, en u dienaars het vee.” Hulle het ook gesê: “As ons guns vind in u oë, gee dan hierdie gebied vir u dienaars as erfgrond. Moet ons nie die Jordaan laat oorsteek nie.” Moses het vir die nageslag van Gad en Ruben gesê: “Moet julle broers oorlog toe gaan terwyl julle hier bly? Waarom wil julle die Israeliete ontmoedig om deur te trek na die land wat die Here vir hulle gegee het? Julle voorvaders het net so gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land deur te kyk. Hulle het opgetrek tot by die Eskoldal en die land deurgekyk; maar hulle het die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land gegaan het wat die Here vir hulle gegee het nie. Die toorn van die Here het op daardie dag ontbrand en Hy het 'n eed afgelê, ‘Die manne van twintig jaar en ouer, wat uit Egipte opgetrek het, sal nie die land sien wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie; want hulle het My nie met volharding gevolg nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, van die Kenasstam, en Josua, seun van Nun; want hulle het die Here met volharding gevolg.’ Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat nie een meer oorgebly het van die hele geslag wat gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here nie. En kyk, julle het in die plek van julle voorvaders gaan staan, julle sondige geslag, om die brandende toorn van die Here teen Israel nog erger te maak. As julle ophou om Hom te volg, sal Hy julle weer in die woestyn agterlaat, en julle sal die ondergang van hierdie hele volk veroorsaak.” Maar hulle het tot by hom gekom en gesê: “Veekrale sal ons hier bou vir ons diere en stede vir ons afhanklikes. Maar ons, ons sal ons in slagorde bewapen aan die voorpunt van die Israeliete, totdat ons hulle by hulle plek gebring het, terwyl ons afhanklikes in die versterkte stede bly woon vanweë die inwoners van die land. Ons sal nie na ons huise terugkeer nie, totdat elkeen van die Israeliete sy erfdeel volledig besit; want ons wil nie saam met hulle 'n erfdeel hê oorkant die Jordaan en verder weg nie. Nee, ons erfdeel het ons aan die oostekant van die Jordaan toegeval.” Toe sê Moses vir hulle: “As julle hierdie saak so aanpak, as julle voor die Here julle vir die geveg bewapen, en elke gewapende man onder julle, voor die Here uit, die Jordaan oorsteek totdat Hy sy vyande voor Hom verdryf het en die land voor die Here onderwerp is, kan julle daarná terugkeer. Julle sal dan sonder blaam wees teenoor die Here en teenoor Israel, en hierdie gebied sal in die oë van die Here vir julle erfgrond wees. Maar as julle nie so optree nie; kyk, dan het julle teen die Here gesondig. Julle moet besef: Julle sonde sal julle inhaal. Bou self stede vir julle afhanklikes, en krale vir julle kleinvee; maar wat oor julle lippe gekom het, moet julle uitvoer.” Die nageslag van Gad en Ruben het vir Moses gesê: “U dienaars sal doen wat my heer beveel. Ons afhanklikes, ons vroue, ons vee en al ons diere sal daar in die stede van Gilead bly; maar u dienaars, elkeen wat gewapen is vir oorlog, sal oortrek voor die Here uit, soos my heer sê.” Daarop het Moses oor hulle opdragte gegee aan die priester Eleasar en aan Josua, seun van Nun, asook aan die familiehoofde van die Israelitiese stamme. Moses het vir hulle gesê: “As die nageslag van Gad en Ruben saam met julle die Jordaan oorsteek, elkeen wat gewapen is vir die geveg voor die Here, en die land voor julle onderwerp is, moet julle vir hulle die land Gilead gee as erfgrond. Maar as hulle nie gewapen saam met julle oortrek nie, moet hulle tussen julle erfgrond kry in die land Kanaän.” Die nageslag van Gad en Ruben het daarop gereageer en gesê: “Wat die Here aan u dienaars gesê het, sal ons doen. Ons sal gewapen voor die Here na die land Kanaän oortrek, maar ons sal ons onvervreembare erfgrond oos van die Jordaan behou.” Moses het toe vir die nageslag van Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse, seun van Josef, die koninkryk van Sihon, koning van die •Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, gegee – die gebied volgens sy stede, met die omliggende grond van die stede in die gebied. Die nageslag van Gad het Dibon, Atarot en Aroër herbou, ook Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, Bet-Nimra en Bet-Haran – versterkte stede met skaapkrale. Die nageslag van Ruben het Gesbon, Elale en Kirjatajim herbou, asook Nebo, Baäl-Meon – waarvan die name verander is – en Sibma. Hulle het al die name van die stede wat hulle herbou het, verander. Die nageslag van Magir, seun van Manasse, het na Gilead gegaan. Hulle het dit verower en die Amoriete wat daarin was, verdryf. Moses het toe Gilead vir Magir, seun van Manasse, gegee en hy het daar gaan woon. Jaïr, seun van Manasse, het gegaan en die tentdorpe van die Amoriete ingeneem. Hy het dit Gawwoot-Jaïr genoem. Nobag het gegaan en Kenat en omliggende dorpies ingeneem. Hy het dit sy eie naam, Nobag, gegee. Dit is die trekskofte van die Israeliete wat onder leiding van Moses en Aäron, in hulle leërafdelings uit Egipteland weggetrek het. Moses het in opdrag van die Here die vertrekpunte van hulle trekskofte neergeskryf. Dit is dan hulle trekskofte volgens die vertrekpunte: Hulle het van Ramses af weggetrek in die eerste maand – op die vyftiende dag van die eerste maand. Die dag ná die Pasga het die Israeliete voor die oë van al die Egiptenare weggetrek met opgehefde hand. Die Egiptenare was besig om al die eersgeborenes onder hulle wat deur die Here getref is, te begrawe. Die Here het ook oor hulle gode oordele voltrek. Die Israeliete het toe van Ramses af weggetrek en by Sukkot kamp opgeslaan. Hulle het van Sukkot af weggetrek en by Etam, op die rand van die woestyn, kamp opgeslaan. Hulle het van Etam af weggetrek, teruggedraai na Pi-Hagirot wat oos van Baäl-Sefon lê, en kamp opgeslaan voor Migdol. Hulle het by Pi-Hagirot weggetrek en dwarsdeur die see na die woestyn getrek. Hulle het drie dagreise ver die Etamwoestyn ingetrek en kamp opgeslaan by Mara. Hulle het van Mara af weggetrek en by Elim aangekom. By Elim was daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms. Daar het hulle kamp opgeslaan. Hulle het van Elim af weggetrek en kamp opgeslaan by die Rietsee. Hulle het van die Rietsee af weggetrek en kamp opgeslaan in die Sinwoestyn. Hulle het van die Sinwoestyn af weggetrek en kamp opgeslaan by Dofka. Hulle het van Dofka af weggetrek en kamp opgeslaan by Alus. Hulle het van Alus af weggetrek en kamp opgeslaan by Refidim. Daar was nie water vir die volk om te drink nie. Hulle het van Refidim af weggetrek en kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn. Hulle het van die Sinaiwoestyn af weggetrek en kamp opgeslaan by Kibrot-Taäwa. Hulle het van Kibrot-Taäwa af weggetrek en kamp opgeslaan by Gaserot. Hulle het van Gaserot af weggetrek en kamp opgeslaan by Ritma. Hulle het van Ritma af weggetrek en kamp opgeslaan by Rimmon-Peres. Hulle het van Rimmon-Peres af weggetrek en kamp opgeslaan by Libna. Hulle het van Libna af weggetrek en kamp opgeslaan by Rissa. Hulle het van Rissa af weggetrek en kamp opgeslaan by Kehelata. Hulle het van Kehelata af weggetrek en kamp opgeslaan by Har-Sefer. Hulle het van Har-Sefer af weggetrek en kamp opgeslaan by Garada. Hulle het van Garada af weggetrek en kamp opgeslaan by Makhelot. Hulle het van Makhelot af weggetrek en kamp opgeslaan by Tagat. Hulle het van Tagat af weggetrek en kamp opgeslaan by Terag. Hulle het van Terag af weggetrek en kamp opgeslaan by Mitka. Hulle het van Mitka af weggetrek en kamp opgeslaan by Gasmona. Hulle het van Gasmona af weggetrek en kamp opgeslaan by Moserot. Hulle het van Moserot af weggetrek en kamp opgeslaan by Bene-Jaäkan. Hulle het van Bene-Jaäkan af weggetrek en kamp opgeslaan by Gor-Haggidgad. Hulle het van Gor-Haggidgad af weggetrek en kamp opgeslaan by Jotbata. Hulle het van Jotbata af weggetrek en kamp opgeslaan by Abrona. Hulle het van Abrona af weggetrek en kamp opgeslaan by Es-jon-Geber. Hulle het van Es-jon-Geber af weggetrek en kamp opgeslaan in die Tsinwoestyn, dit is by Kades. Hulle het van Kades af weggetrek en kamp opgeslaan by die berg Hor aan die grens van die land Edom. Die priester Aäron het op bevel van die Here die berg Hor uitgeklim en daar gesterf in die vyfde maand, op die eerste van die maand, in die veertigste jaar ná die Israeliete se uittog uit Egipteland. Aäron was honderd drie-en-twintig jaar oud toe hy op die berg Hor gesterf het. Die Kanaänitiese koning van Arad, die een wat in die Negev, in die land Kanaän, gewoon het, het toe gehoor dat die Israeliete aan die kom was. Hulle het van die berg Hor af weggetrek en kamp opgeslaan by Salmona. Hulle het van Salmona af weggetrek en kamp opgeslaan by Punon. Hulle het van Punon af weggetrek en kamp opgeslaan by Obot. Hulle het van Obot af weggetrek en kamp opgeslaan by Ije-Abarim op die grens van Moab. Hulle het van Ije-Abarim af weggetrek en kamp opgeslaan by Dibon-Gad. Hulle het van Dibon-Gad af weggetrek en kamp opgeslaan by Almon-Diblatajim. Hulle het van Almon-Diblatajim af weggetrek en kamp opgeslaan by die Abarimberge voor Nebo. Hulle het van die Abarimberge af weggetrek en kamp opgeslaan in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo. Hulle het kamp opgeslaan in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, van Bet-Jesimot af tot by Abel-Sittim. Die Here het met Moses gepraat in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo, en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, moet julle al die inwoners van die land voor julle uit verdryf en al hulle afbeeldings vernietig. Al die namaaksels van hulle gegote beelde moet julle vernietig, en al hulle offerhoogtes moet julle verwoes. Dan moet julle die land in besit neem en daarin woon, want aan julle het Ek die land gegee om dit te besit. Julle moet die land onder mekaar verdeel deur loting. Volgens julle familiegroepe moet julle vir dié wat baie is, 'n groter erfdeel gee; vir dié wat min is, moet jy 'n kleiner erfdeel gee. Waar die lot ook al vir iemand val, dit sal syne wees. Volgens die stamme van julle voorvaders moet julle dit onder mekaar verdeel. “ ‘As julle egter nie die inwoners van die land voor julle uit verdryf nie, sal dié van hulle wat julle laat oorbly, soos splinters wees in julle oë en soos dorings in julle sye. Hulle sal julle aanval in die land waar julle woon. En dan, wat Ek beplan het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.’ ” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Gee die Israeliete opdrag en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land Kanaän aankom, is dít die grondgebied wat aan julle as erfenis toeval – die land Kanaän met sy grense: “ ‘ Aan die suidekant sal julle gebied in die Tsinwoestyn al langs Edom lê. Julle suidelike grens sal in die ooste vanaf die punt van die Soutsee wees. Dan swaai julle grens suid van Skerpioenhoogte en gaan oor na Tsin. Die verste punt lê suid van Kades-Barnea dit loop verder na Gasar-Addar en dan oor na Asmon. Die grens swaai dan van Asmon af na die Spruit van Egipte, en die verste punt is die see. “ ‘ Wat die westelike grens betref: Dit moet vir julle die Groot See en die kusgebied wees. Dit sal vir julle die westelike grens wees. “ ‘ En dít sal vir julle die noordelike grens wees: Vanaf die Groot See moet julle vir julle 'n lyn trek na die berg Hor, en vanaf die berg Hor moet julle weer 'n lyn trek na Lebo-Hamat. Die verste punt van die grens moet by Sedad wees. Die grens strek verder na Sifron, en sy verste punt is Gasar-Enan. Dit sal julle noordelike grens wees. “ ‘Vir die oostelike grens moet julle vir julle 'n lyn trek vanaf Gasar-Enan na Sefam. Van Sefam af loop die grens af na Ribla, aan die oostekant van Ajin. Dan daal die grens verder af en loop al langs die berghange oos van die meer van Gennesaret. Daarna daal die grens af na die Jordaan, met die verste punt by die Soutsee. Dit sal julle land wees volgens sy grense aan alle kante.’ ” Moses het die Israeliete beveel: “Dit is die land wat julle deur loting onder mekaar as erfenis moet verdeel, wat die Here beveel het om aan die nege-en-'n-halwe stamme te gee. Want die stam van die nageslag van Ruben het, volgens hulle families, hulle deel ontvang, en die stam van die nageslag van Gad, volgens hulle families. Ook die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel ontvang. Die twee-en-'n-halwe stamme, hulle het hulle erfdeel ontvang oorkant die Jordaan, teenoor Jerigo, ooswaarts na waar die son opkom.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “ Dit is die name van die manne wat vir julle die land as erfenis moet toewys: die priester Eleasar en Josua, seun van Nun. Een leier uit elke stam moet julle neem om die land as erfenis toe te wys. Dit is die name van die manne: “vir die stam Juda: Kaleb, seun van Jefunne; vir die stam van die nageslag van Simeon: Samuel, seun van Ammihud; vir die stam Benjamin: Elidad, seun van Kislon; vir die stam van die nageslag van Dan: as leier Bukki, seun van Jogli; “wat die nageslag van Josef betref: “vir die stam van die nageslag van Manasse: as leier Ganniël, seun van Efod; en vir die stam van die nageslag van Efraim: as leier Kemuel, seun van Siftan; vir die stam van die nageslag van Sebulon: as leier Elisafan, seun van Parnak; vir die stam van die nageslag van Issaskar: as leier Paltiël, seun van Assan; vir die stam van die nageslag van Aser: as leier Agihud, seun van Selomi; vir die stam van die nageslag van Naftali: as leier Pedael, seun van Ammihud.” Dit is hulle vir wie die Here opdrag gegee het om aan die Israeliete hulle erfenis toe te wys in die land Kanaän. Die Here het met Moses gepraat in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo. Hy het gesê: “Gee die Israeliete opdrag dat hulle vir die Leviete van hulle onvervreembare erfgrond moet gee as stede om in te woon. Julle moet ook meentgrond rondom hulle stede vir die Leviete gee. Die stede is vir hulle om in te woon, en die meentgrond is vir hulle beeste en vir hulle besittings, en vir al hulle diere. Die meentgrond van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet vanaf die muur van die stad na buite eenduisend el na alle kante strek. Julle moet buite die stad aan die oostekant tweeduisend el afmeet, aan die suidekant tweeduisend el, aan die westekant tweeduisend el en aan die noordekant tweeduisend el, met die stad in die middel; en dit moet vir hulle die meentgrond van die stede wees. “ Wat die stede betref wat julle vir die Leviete moet gee: Daar moet ses asielstede wees van dié wat julle afstaan, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, daarheen kan vlug; en daarby moet julle nog twee-en-veertig stede afstaan. Al die stede wat julle vir die Leviete afstaan, moet saam agt-en-veertig wees, die stede met hulle meentgrond. En wat die stede betref wat julle uit die erfgrond van die Israeliete afstaan: Van dié wat baie stede het, moet julle meer neem, en van dié wat min stede het, moet julle minder neem. Elke stam moet volgens sy erfenis wat hy ontvang, van sy stede vir die Leviete afstaan.” Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, moet julle vir julle stede uitsoek; asielstede moet dit vir julle wees. Iemand wat 'n lewe geneem het, wat iemand onopsetlik gedood het, moet daarheen vlug. Dit moet vir julle asielstede teen bloedwrekers wees, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, nie sal sterf voordat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing nie. Van die stede wat julle afstaan, moet ses vir julle asielstede wees. Drie stede moet julle aan die oorkant van die Jordaan afstaan, en drie stede moet julle in die land Kanaän afstaan. Dit moet asielstede wees. Vir die Israeliete, vir •vreemdelinge en vir bywoners tussen julle moet hierdie ses asielstede daar wees, sodat enigiemand wat 'n persoon onopsetlik doodgemaak het, daarheen kan vlug. “ ‘ Maar as hy iemand met 'n ystervoorwerp geslaan het en die persoon sterf, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. En as hy met 'n klip in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Of as hy met 'n houtvoorwerp in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak. Wanneer hy hom raakloop, moet hy hom doodmaak. En as iemand uit haat 'n ander gestamp of iets met opset na hom gegooi het, en hy sterf, of hom uit vyandskap met die hand geslaan het, en hy is dood, moet die een wat doodgemaak het, beslis sterf; hy is 'n moordenaar. Die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak wanneer hy hom raakloop. “ ‘Maar as iemand onverwags, sonder vyandskap, 'n ander gestamp het, of enige voorwerp onopsetlik na hom gegooi het, of in onoplettendheid ook enige klip wat die dood kan veroorsaak, en hy hom getref het, en hy dood is, maar hy was nie sy vyand nie, en hy het nie bedoel om hom kwaad aan te doen nie, dan moet die volksvergadering op grond van hierdie bepalings uitspraak lewer tussen die een wat doodgemaak het en die bloedwreker. Die volksvergadering moet die een wat 'n lewe geneem het uit die hand van die bloedwreker red. Die volksvergadering moet hom laat terugkeer na sy asielstad waarheen hy gevlug het. Hy moet daarin woon tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is. “ ‘As die een wat 'n lewe geneem het, egter enigsins die gebied van sy asielstad waarheen hy moes vlug, verlaat, en die bloedwreker kry hom buite die gebied van sy asielstad, en die bloedwreker maak die een dood wat 'n lewe geneem het, rus daar nie bloedskuld op hom nie. Want die persoon moet in sy asielstad bly tot die dood van die hoëpriester. Ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n lewe geneem het, na die streek van sy erfgrond terugkeer. Dit moet vir julle 'n wetlike voorskrif wees, vir julle nageslagte in al julle woonplekke. “ ‘ Wat betref enigiemand wat 'n persoon doodgemaak het – net op grond van die verklaring van getuies mag die een wat 'n lewe geneem het, doodgemaak word. Maar die doodstraf mag nie opgelê word wanneer net een getuie teen 'n persoon getuig nie. “ ‘ Julle mag nie vrykoopgeld aanvaar vir die lewe van 'n moordenaar wat ter dood veroordeel is nie, want hy moet beslis sterf. Julle mag nie van iemand vrykoopgeld aanvaar in ruil vir die vlug na sy asielstad, met die doel dat hy kan terugkeer om in die land te woon voor die dood van die priester nie. Julle mag nie die land waarin julle is, besoedel nie. Ja, bloed, dit is wat die land besoedel. Vir die land word nie versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, behalwe deur die bloed van hom wat dit vergiet. Julle mag nie die land waarin julle woon, waarin Ek ook vertoef, verontreinig nie; want Ek, die Here, vertoef tussen die Israeliete.’ ” Die familiehoofde van die familiegroep wat afstam van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, uit die familiegroepe wat van Josef afstam, het na vore getree. Hulle het voor Moses en die leiers, die familiehoofde van die Israeliete, gepraat. Hulle het gesê: “Vir my heer het die Here opdrag gegee om die land deur loting, met erfreg vir die Israeliete, te gee. En my heer is deur die Here beveel om die erfdeel van Selofgad, ons volksgenoot, vir sy dogters te gee. As hulle nou die vroue word van iemand uit die seuns van die ander Israelitiese stamme, en hulle erfdeel word weggeneem van ons voorouers se erfdeel en gevoeg by die erfdeel van die stam waaraan hulle dan behoort, sal ons erfdeel wat deur loting aangewys is, weggeneem word. En as dit dan jubeljaar is vir die Israeliete, sal hulle erfdeel bygevoeg word by die erfdeel van die stam waaraan hulle dan behoort; en so word hulle erfdeel uit die erfdeel van die stam van ons voorouers weggeneem.” Moses het die Israeliete in opdrag van die Here beveel: “Die stam van die nageslag van Josef het gelyk. Dit is die uitspraak wat die Here oor die dogters van Selofgad gegee het, ‘Hulle mag die vroue word van mans wat goed is in hulle oë, maar hulle mag alleen die vroue word van mans in 'n familiegroep van hulle voorvaderlike stam. Die erfdeel van die Israeliete mag nie van een stam na 'n ander stam oorgaan nie, want die Israeliete moet elkeen aan die erfdeel van hulle voorvaderlike stam verbonde bly. Elke dogter onder die Israelitiese stamme wat 'n erfdeel in besit neem, moet met iemand uit 'n familiegroep van haar vader se stam trou, sodat die Israeliete elkeen die erfdeel van sy voorouers kan besit. 'n Erfdeel mag nie van een stam na 'n ander stam oorgaan nie, want elke stam van Israel moet aan sy erfdeel verbonde bly.” Soos die Here Moses beveel het, presies so het die dogters van Selofgad toe gemaak. Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, die dogters van Selofgad, het die vroue geword van die seuns van hulle ooms aan vaderskant. Met mans uit familiegroepe van die nageslag van Manasse, seun van Josef, het hulle getrou. Hulle erfdeel het gebly by 'n familiegroep van hulle vader se stam. Dit is die wette en beslissings wat die Here by monde van Moses aan die Israeliete opgedra het in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo. Dit is die woorde wat Moses gesê het vir die hele Israel oorkant die Jordaan. Dit was in die droë streek in die Araba teenoor Suf, tussen Paran en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. Dit neem elf dae vanaf Horeb tot by Kades-Barnea met die pad deur die Seïrberge. In die veertigste jaar, op die eerste dag van die elfde maand, het Moses alles vir die Israeliete gesê net soos die Here hom beveel het om vir hulle te sê. Dit het gebeur nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon regeer het, en Og, die koning van Basan, wat in Astarot regeer het, by Edreï verslaan het. Oorkant die Jordaan, in die land Moab, het Moses begin om hierdie wet vir hulle uiteen te sit. Hy het gesê: “ Die Here ons God het by Horeb met ons gepraat. Hy het gesê, ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Breek julle kamp op en trek na die bergland van die Amoriete en al die omliggende gebiede: die Araba, die bergland, die Sjefela, die Negev en die kusvlakte – dit wil sê, die land van die Kanaäniete en ook die Libanon en die gebied tot by die groot rivier, die Eufraat. Kyk, Ek bied vir julle die land aan. Gaan en neem die land in besit wat Ek, die Here, met 'n eed aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle en hulle nageslag ná hulle te gee.’ “In daardie tyd het ek, Moses, vir julle gesê, ‘Ek kan julle nie meer alleen dra nie. Die Here julle God het julle baie laat word. Kyk, julle is nou al so baie soos die sterre aan die hemelruim. Mag die Here, die God van julle voorvaders, julle nog 'n duisend maal meer maak, ja, mag Hy julle seën soos Hy vir julle gesê het. Maar hoe kan ek alleen julle laste dra, julle probleme en geskille? Bring vir julle uit elke stam verstandige manne met insig en ervaring sodat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.’ “Julle het my daarop geantwoord en gesê, ‘Wat u gesê het ons moet doen, is goed.’ Ek het toe julle stamhoofde geneem, verstandige manne met ervaring, en hulle as hoofde oor julle aangestel: •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien, as opsieners oor julle stamme. “ Ek het in daardie tyd julle regters opdrag gegee en gesê, ‘Luister na albei partye en gee 'n regverdige uitspraak tussen volksgenote, en ook tussen 'n volksgenoot en 'n •vreemdeling by hom. Moenie partydig wees in 'n regsaak nie. Luister na die onbelangrike persoon soos julle na die belangrike persoon sou luister. Moet julle nie deur 'n mens laat afdreig nie, want die regspraak is 'n saak van God. 'n Saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, dan sal ek dit verhoor.’ So het ek julle in daardie tyd beveel wat julle alles moet doen. “ Ons het toe by Horeb kamp opgebreek en deur daardie groot en vreesaanjaende woestyn, wat julle self gesien het, getrek. Soos die Here ons God ons beveel het, het ons met die pad na die bergland van die Amoriete getrek en by Kades-Barnea uitgekom. Daar het ek vir julle gesê, ‘Julle het die bergland van die Amoriete bereik wat die Here ons God vir ons gaan gee. Kyk, die Here julle God bied die land vir julle aan. Trek op, neem dit in besit soos die Here, die God van julle voorouers, vir julle gesê het. Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie.’ “Maar julle het almal na my gekom en gesê, ‘Ons wil manne voor ons uitstuur sodat hulle vir ons die land kan verken en aan ons verslag kan lewer oor die pad waarlangs ons moet optrek, en oor die stede waarby ons gaan uitkom.’ Ek het dit goed gevind en het toe twaalf van julle manne aangewys, een uit elke stam. Hulle het vertrek en in die bergland opgegaan. Hulle het tot by die Eskoldal gevorder, dit verken, van die vrugte van die land geneem en dit afgebring na ons toe. Hulle het aan ons verslag gelewer en gesê, ‘Dit is 'n goeie land wat die Here ons God vir ons gaan gee.’ “ Maar julle was nie bereid om op te trek nie. Julle was opstandig teen die bevel van die Here julle God en het in julle tente gesit en mor en gesê, ‘Dit is omdat die Here ons haat dat Hy ons uit Egipteland uitgelei het om ons in die hand van die Amoriete oor te gee en om ons uit te delg. Waar moet ons nou heen gaan? Ons volksgenote het ons laat moed verloor toe hulle gesê het dat daar mense is wat groter en langer is as ons, dat daar groot stede is wat hemelhoog versterk is en dat hulle selfs Enakiete daar gesien het.’ “ Ek het vir julle gesê, ‘Julle mag nie paniekerig raak nie en julle mag nie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God wat voor julle uit gaan, Hy self sal vir julle veg net soos al die vorige kere toe Hy dit voor julle oë vir julle gedoen het in Egipte en in die woestyn. Daar het julle gesien dat die Here julle God julle die hele pad wat julle gekom het tot op hierdie plek dra, soos 'n man sy seuntjie dra.’ “Ondanks dié versekering het julle geen vertroue gestel in die Here julle God nie, Hy wat voor julle uit gegaan het op die pad om telkens vir julle 'n plek uit te soek waar julle kon kamp en wat snags met die vuur en bedags met die wolk vir julle die pad gewys het waarlangs julle moes trek. Die Here het daardie woorde van julle duidelik gehoor en toornig geword. Hy het 'n eed gesweer en gesê, ‘Niemand van hierdie manne, hierdie slegte geslag, sal die goeie land sien wat Ek plegtig beloof het om aan julle voorouers te gee nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne. Hy sal die land sien en vir hom en sy kinders sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, omdat hy volkome getrou gebly het aan My, die Here. ’ “ Ook op my was die Here toornig deur julle toedoen. Hy het gesê, ‘Ook jy sal nie daar ingaan nie. Josua, die seun van Nun, wat in jou diens is, hy sal daar ingaan; hom moet julle ondersteun, want hy is die een wat Israel die land in besit sal laat neem. Julle klein kindertjies wat julle gedink het oorlogsbuit gaan word en julle groter kinders wat nou nog nie die verskil tussen goed en kwaad ken nie, hulle sal daar ingaan; vir hulle sal Ek dit gee, ja, hulle sal dit in besit neem. Maar wat julle betref: Draai weg, trek die woestyn in, in die rigting van die Rietsee. ’ “Julle het toe daarop geantwoord en vir my gesê, ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons sal optrek en gaan veg net soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het toe ook elkeen sy oorlogswapens aangegord, omdat dit vir julle maklik gelyk het om in die bergland op te gaan. Maar die Here het vir my gesê, ‘Sê vir hulle: “Julle mag nie optrek nie en julle mag nie gaan oorlog maak nie, want Ek is nie in julle midde nie. Julle mag nie deur julle vyande verslaan word nie.” ’ Ek het dit vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle was opstandig teen die bevel van die Here en het selfversekerd in die bergland opgetrek. Die Amoriete wat in daardie bergland woon, het uitgetrek om teen julle te veg. Hulle het julle gejaag soos 'n swerm bye 'n mens jaag en julle uitmekaar laat spat van Seïr af tot by Gorma. Nadat julle teruggekom het, het julle voor die Here gaan huil; maar Hy wou nie na julle gekerm luister nie en het nie aan julle aandag gegee nie. Julle het toe lank by Kades gebly – 'n baie lang tyd.” “ Daarna het ons weggedraai en na die woestyn getrek in die rigting van die Rietsee soos wat die Here vir my gesê het. Nadat ons 'n lang tyd om die Seïrberge getrek het, het die Here vir my gesê, ‘Julle het lank genoeg om hierdie berge getrek. Draai nou noord, maar gee eers aan die mense opdrag: “Julle gaan nou trek deur die gebied van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle sal vir julle bang wees, maar wees baie versigtig. Sorg dat julle nie met hulle in 'n stryd gewikkel raak nie, want Ek gee julle nie 'n voetbreedte van hulle land nie. Ek het immers die Seïrberge vir Esau gegee as sy eiendom. Die kos wat julle gaan eet, moet julle by hulle koop met silwer. Selfs die water wat julle gaan drink, moet julle by hulle ruil vir silwer.” ’ “ Die Here julle God het julle immers geseën in alles wat julle gedoen het. Hy het julle versorg op julle trek deur hierdie groot woestyn. Hierdie veertig jaar wat die Here julle God by julle was, het julle geen gebrek gely nie. “ Ons het by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, verbygetrek deur nie die pad te volg wat van Elat en Es-jon-Geber af deur die Araba loop nie. Ons het weggedraai en met die pad na die Moabwoestyn getrek. Die Here het toe vir my gesê, ‘Moenie Moab aanval nie en sorg dat julle nie met hulle in 'n geveg betrokke raak nie, want Ek gee julle nie 'n deel van hulle land as eiendom nie. Ja, vir die nageslag van Lot het Ek Ar as eiendom gegee.’ ” Die Emiete het vroeër daar gewoon. Hulle was 'n magtige volk, talryk en net so lank soos die Enakiete. Soos die Enakiete, word hulle ook tot die Refaïete gereken. Die Moabiete noem hulle Emiete. Die Goriete het vroeër in Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle daar uitgedryf en uitgedelg oral waar hulle gekom het. Hulle het in hulle gebied gaan woon, net soos die Israeliete later gemaak het met die land wat die Here vir hulle as hulle eiendom gegee het. “ Die Here het verder gesê, ‘Maak nou gereed en trek deur die Sered-dal. ’ Ons het toe deur die Sered-dal getrek. Die tyd wat dit geneem het vandat ons van Kades-Barnea af weggetrek het totdat ons deur die Sered-dal getrek het, was agt-en-dertig jaar. Toe was daar nie meer een van daardie hele geslag krygsmanne in die kamp oor nie. Dit het gebeur soos die Here dit vir hulle met 'n eed bevestig het. Die hand van die Here was inderdaad teen hulle om hulle in verwarring uit die kamp te dryf tot daar nie een oor was nie. “Toe al die krygsmanne dood was en daar nie meer een onder die volk oor was nie, het die Here vir my gesê, ‘Julle gaan vandag by Ar, die grondgebied van Moab, verbytrek en in die omgewing van die Ammoniete kom. Moenie hulle aanval nie en sorg dat julle nie met hulle in 'n stryd gewikkel raak nie, want Ek gee nie vir julle enige eiendom in die Ammoniete se land nie. Ek het dit immers vir die nageslag van Lot as eiendom gegee.’ ” Dit word ook as die land van die Refaïete beskou. Hulle het vroeër daar gewoon. Die Ammoniete noem hulle Samsummiete. Hulle was 'n magtige volk, talryk en net so lank soos die Enakiete. Die Here het hulle voor die Ammoniete uitgedelg sodat die Ammoniete hulle kon verdryf en in hulle gebied kon gaan woon. Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon: Hy het die Goriete voor hulle uitgedelg, sodat hulle die Goriete kon verdryf en in hulle plek kon gaan woon; dit is vandag nog so. Dit het ook met die Awwiete gebeur wat in dorpies in die omgewing van Gasa gewoon het: Die Kaftorane wat van Kaftor af gekom het, het hulle uitgedelg en in hulle gebied gaan woon. “ Die Here het verder gesê, ‘Maak julle gereed, trek verder en gaan deur die Arnondal. Kyk, Ek gee Sihon, die Amoritiese koning van Gesbon, en sy land in julle hand. Begin dan, beset die land en maak oorlog teen hulle. Van vandag af sal Ek sorg dat julle vrees inboesem by elke volk onder die son, en dat hulle vir julle ontsag het. Wanneer hulle die gerug oor julle hoor, sal hulle aan die bewe gaan en ineenkrimp van angs vir julle.’ “ Ek, Moses, het toe van die weiveld by Kedemot af boodskappers gestuur na Sihon, die koning van Gesbon, met die volgende vredesboodskap, ‘Ek wil deur u land trek. Ek sal net op die pad bly en nie na links of regs uitdraai nie. Kos kan jy vir silwer aan my verkoop sodat ek kan eet, en water kan jy ook vir silwer aan my lewer sodat ek kan drink. Ek wil net te voet deurtrek, soos die nageslag van Esau wat in Seïr woon en die Ammoniete wat in Ar woon, my toegelaat het, totdat ek deur die Jordaan kan trek na die land wat die Here ons God vir ons gaan gee.’ “ Maar Sihon, die koning van Gesbon, wou nie dat ons by hom verbytrek nie, want die Here julle God het sy gees verhard en hom koppig gemaak sodat Hy hom in julle hand kon gee, soos dit vandag is. Die Here het toe vir my gesê, ‘Kyk, Ek is reeds besig om Sihon en sy land aan julle te gee. Begin dan, dryf hulle uit sodat julle sy land in besit kan neem.’ “Daarop het Sihon teen ons opgetrek, hy en al sy manskappe, om teen ons oorlog te maak by Jahas. Maar die Here ons God het hom aan ons oorgegee, en ons het hom en sy seuns en al sy manskappe verslaan. In daardie tyd het ons al sy stede ingeneem en in elke stad die mans, vroue en kinders met die banvloek getref. Ons het niemand laat vrykom nie. Slegs die diere het ons vir onsself uitgehou, asook die oorlogsbuit van die stede wat ons ingeneem het. Van Aroër af, wat op die rand van die Arnondal lê, ja, vanaf die stad wat in die dal is tot by Gilead, was daar nie 'n vesting wat vir ons te sterk was nie. Elke enkele een het die Here ons God aan ons oorgegee. Net na die land van die Ammoniete het julle nie gegaan nie. Dit is die hele gebied aan die kant van die Jabbokdal, asook die stede in die bergland. En dit is alles wat die Here ons God beveel het. “ Ons het toe van koers verander en in die rigting van Basan opgetrek. Toe het Og, die koning van Basan, ons tegemoet getrek, hy en al sy manskappe, vir 'n geveg by Edreï. Die Here het vir my gesê, ‘Moenie vir hom bang wees nie, want in jou hand gee Ek hom, al sy manskappe en sy land. Jy moet met hom maak soos jy gemaak het met Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het.’ So het die Here ons God ook Og, die koning van Basan, en al sy manskappe, in ons hand gegee. Ons het hulle so verslaan dat daar niemand van hom oor was wat kon ontvlug nie. Ons het in daardie tyd al sy stede ingeneem. Daar was nie 'n vesting wat ons nie van hulle afgeneem het nie: sestig stede, die hele landstreek van Argob wat die ryk van Og in Basan uitmaak. Dit was alles versterkte stede met hoë mure, poortdeure en sluitbalke. Dit is afgesien van die groot aantal nedersettings wat ons ingeneem het. Ons het die inwoners daarvan met die banvloek getref, soos ons gemaak het in die geval van Sihon, die koning van Gesbon. In elke stad is die mans, vroue en kinders met die banvloek getref. Al die vee en oorlogsbuit uit die stede het ons egter vir onsself uitgehou. “So het ons in daardie tyd die gebied oorkant die Jordaan uit die hand van die twee Amoritiese konings geneem, van die Arnondal af tot by die berg Hermon.” Die Sidoniërs noem Hermon Sirjon, maar die Amoriete noem dit Senir. “Dit sluit al die stede van die plato, van die hele Gilead en die hele Basan in, tot by Salga en Edreï – dit is die stede van die ryk van Og in Basan.” Og, die koning van Basan, was die laaste wat oorgebly het van die Refaïete. Sy slaapbank was sowaar van yster. Is dit nie nog steeds in Rabba, die hoofstad van die Ammoniete nie? Dit is nege el lank en vier el breed, volgens die gewone el. “ Hierdie hele gebied het ons in daardie tyd verower, van Aroër af, wat langs die Arnondal lê, tot in die helfte van die bergland van Gilead, met die stede daarin. Ek het dit vir die stamme van Ruben en Gad gegee. Die res van Gilead en die hele Basan, die koninkryk van Og, het ek vir die halwe stam van Manasse gegee.” Die hele landstreek van Argob, eintlik daardie hele Basanstreek, is die land van die Refaïete genoem. Jaïr, 'n afstammeling van Manasse, het die hele landstreek van Argob tot by die grens van Gesur en Maäga gekry. Hy het die dorpe, ook Basan, na homself vernoem. Dit word vandag nog Gawwoot-Jaïr genoem. “En vir Magir het ek Gilead gegee. “Vir die stamme van Ruben en Gad het ek die deel vanaf Gilead tot by die Arnondal gegee met die middel van die dal as grens; en tot aan die Jabbokdal, die grens van die Ammoniete; ook die Araba, met die Jordaan as grens vanaf die meer van Gennesaret tot by die See van die Araba, die Soutsee, en ooswaarts tot onder aan die hange van Pisga. “ Ek het julle in daardie tyd opdrag gegee en gesê, ‘Die Here julle God het nou wel vir julle hierdie land gegee om in besit te neem, maar al julle onverskrokke manne moet gewapend oortrek voor julle volksgenote, die Israeliete. Net julle vrouens, die swakkes onder julle en julle vee – ek weet dat julle baie vee het – mag in julle stede gaan bly wat ek vir julle gegee het. Eers nadat die Here vir julle volksgenote rus gegee het, soos vir julle, wanneer ook hulle die land beset het wat die Here julle God vir hulle gaan gee oorkant die Jordaan, mag julle weer terugkom, elkeen na sy eiendom wat ek aan julle gegee het.’ “ Vir Josua het ek in daardie tyd opdrag gegee en gesê, ‘Jy het met jou eie oë alles gesien wat die Here julle God aan hierdie twee konings gedoen het. Die Here gaan dieselfde doen met al die koninkryke waarheen jy oortrek. Jy mag nie vir hulle bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle veg.’ “Dit was ook in daardie tyd dat ek by die Here gepleit het, ‘ Here, my Heer, U het pas begin om aan u dienskneg u grootheid en sterk hand te toon; want watter god is daar in die hemel of op die aarde wat u werke en u magtige dade kan nadoen? Laat my asseblief oortrek en die goeie land beleef wat oorkant die Jordaan lê: hierdie mooi bergland en die Libanon.’ Maar die Here het oor julle woedend geword vir my, en Hy wou nie na my luister nie. Hy het vir my gesê, ‘Dit is nou genoeg! Moet nooit weer met My oor hierdie saak praat nie! Klim op na die kruin van Pisga en kyk na die weste, die noorde, die suide en die ooste. Kyk goed, want jy sal nie oor hierdie Jordaanrivier gaan nie. Gee vir Josua sy opdragte, bemoedig en ondersteun hom; want hy sal voor hierdie volk oor die Jordaan trek en vir hulle die land wat jy sien, as besitting gee.’ “Ons het toe in die vallei oorkant Bet-Peor gebly.” “ Israel, luister dan nou na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek julle gaan leer. Voer dit uit sodat julle kan leef en in die land ingaan wat die Here, die God van julle voorouers, vir julle gee om in besit te neem. Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die Here julle God, na wat ek julle beveel. Julle het met julle eie oë gesien wat die Here gedoen het by Baäl-Peor, dat die Here julle God elke enkele persoon onder julle wat agter die Baäl van Peor aangeloop het, onder julle uitgedelg het. Maar julle wat aan die Here julle God vasgehou het, julle almal leef vandag nog. “ Kyk, ek leer julle die vaste voorskrifte en beslissings soos die Here my God my beveel het, sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle op pad is en wat julle in besit gaan neem. Kom dit na en voer dit uit, want daaruit sal dit vir die nasies duidelik wees dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle al hierdie vaste voorskrifte hoor, sal hulle sê, ‘Wat 'n wyse en verstandige volk is hierdie groot nasie nie!’ Want watter ander groot nasie het 'n god wat so na aan hulle is soos die Here ons God aan ons is wanneer ook al ons Hom aanroep? Watter ander groot nasie het vaste voorskrifte en beslissings wat so regverdig is soos hierdie hele wet wat ek vandag aan julle gaan voorhou? “ Wees net versigtig, ja, let noukeurig daarop dat julle nie die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie, en dat dit nie uit julle harte verdwyn solank julle leef nie. Sorg dat julle kinders en kleinkinders kennis dra van die dag toe julle by Horeb in die teenwoordigheid van die Here julle God gestaan het en die Here vir my gesê het, ‘Maak vir My die volk bymekaar. Ek wil hulle my woorde laat hoor. Hulle moet dit leer, sodat hulle, solank as wat hulle op die aarde leef, vir My ontsag kan hê. Hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’ “ Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan terwyl die berg, gehul in donkerte, wolke en diepe duisternis, hemelhoog gebrand het. Die Here het met julle uit die vuur gepraat. Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle kon geen sigbare gestalte sien nie. Daar was net die stem. Hy het aan julle sy verbond bekend gemaak, naamlik die Tien Gebooie, waarvolgens julle moet leef, soos Hy beveel het. Hy het dit ook op twee kliptafels gegraveer. Vir my het die Here in daardie tyd die opdrag gegee om julle sy vaste voorskrifte en beslissings te leer sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle trek om dit in besit te neem. “ Omdat julle nie enige sigbare gestalte gesien het op die dag toe die Here by Horeb met julle uit die vuur gepraat het nie, moet julle uiters versigtig wees ter wille van julleself, sodat julle nie ontaard en vir julle 'n gesnede beeld maak nie: die sigbare gestalte van enige godefiguur, 'n manlike of 'n vroulike afbeelding, die afbeelding van enige dier wat op aarde is, die afbeelding van enige voël wat in die lug vlieg, die afbeelding van enigiets wat op die grond rondkruip of die afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; en sodat julle nie na die hemel opkyk en die son en maan en sterre sien, enige van die hemelliggame, en julle laat verlei om voor hulle in aanbidding te buig en hulle te dien nie. Die Here julle God het hulle aan al die ander nasies onder die son toegewys. Die Here het julle geneem en julle uit 'n ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om aan Hom te behoort, as sy eie volk, soos dit vandag is. “ Die Here was toornig op my oor wat julle gesê het. Hy het met 'n eed bevestig dat ek nie die Jordaan sal oorsteek nie en dat ek nie in die goeie land sal kom wat die Here julle God vir julle as julle erfdeel gaan gee nie. Omdat ek in hierdie land gaan sterf, sal ek nie die Jordaan oorsteek nie. Maar julle sal oortrek en daardie goeie land in besit neem. Wees dus versigtig, sodat julle nie die verbond van die Here julle God vergeet wat Hy met julle gesluit het nie. Moenie vir julle gesnede beelde, die afbeelding van enigiets wat die Here julle God julle verbied het, maak nie, want die Here julle God is 'n verterende vuur; Hy is 'n besitlike God. “ Wanneer julle kinders en kleinkinders het en al oud geword het in die land, en wanneer julle ontaard en gesnede beelde maak, die afbeelding van enigiets, en so doen wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en Hom uittart – ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat julle sonder twyfel spoedig sal verdwyn uit die land oorkant die Jordaan waarheen julle op pad is om dit in besit te neem. Julle sal nie lank daar bly nie, want julle gaan beslis uitgedelg word. Die Here sal julle verstrooi onder die volke. Daar sal min van julle oorbly by die nasies waarheen die Here julle sal wegvoer, en daar sal julle gode dien, maaksels van mensehande, hout en klip wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie. “ Daar sal julle die Here julle God soek en Hom vind, as julle Hom met hart en siel smeek. Wanneer julle in die nood is en al hierdie dinge met julle gebeur, sal julle aan die einde van die dae julle tot die Here julle God bekeer en na sy stem luister. Die Here julle God is immers 'n barmhartige God. Hy sal julle nie versaak nie en julle nie uitroei nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy vir julle voorvaders met 'n eed bevestig het nie. “ Ja, doen gerus navraag van die een uiterste van die hemel tot die ander uiterste oor wat vroeër jare, voor julle tyd, gebeur het, van die dag af dat God mense geskape het op die aarde. Het iets so groots al ooit gebeur of is daar al ooit van so iets gehoor? Het enige volk al die stem van 'n god gehoor wat uit vuur praat, soos wat julle self gehoor het, en nogtans bly leef het? Of het enige god dit al gewaag om vir homself 'n nasie te gaan neem uit die midde van 'n ander nasie, met teistering, met tekens en met wondertekens, met stryd, met 'n sterk hand en uitgestrekte arm, en met vreesaanjaende magsvertoon, soos alles wat die Here julle God voor julle oë in Egipte vir julle gedoen het? Julle was self ooggetuies daarvan, sodat julle kan besef: die Here, Hy is God. Naas Hom is daar geen ander nie. “ Uit die hemel het Hy julle sy stem laat hoor om julle op te voed, en op die aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien. En sy woorde het julle uit die vuur gehoor. Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy hulle nageslag ná hulle gekies, en het Hy self julle met groot krag uit Egipte uitgelei om nasies wat groter en magtiger is as julle voor julle te verdryf en om julle in hulle land in te bring, sodat Hy dit vir julle as erfdeel kan gee, soos dit vandag is. Erken vandag en laat dit in julle harte insink: Die Here, Hy is God bo in die hemel en onder op die aarde. Daar is geen ander nie. Kom daarom altyd sy vaste voorskrifte en gebooie na wat ek vandag vir julle voorskryf, sodat dit met julle en julle kinders ná julle goed kan gaan, en sodat julle 'n lang lewe kan hê op die grond wat die Here julle God vir altyd vir julle gaan gee.” Toe het Moses drie stede aan die oostekant van die Jordaan uitgesonder, sodat iemand wat 'n medemens doodgeslaan het sonder voorbedagte rade en sonder dat hy die persoon voorheen gehaat het, daarheen kon vlug. Deur na een van hierdie stede te vlug, kon hy aan die lewe bly. Dit was Beser in die woestyn op die plato, vir mense van die stam van Ruben, Ramot in Gilead vir mense van die stam van Gad en Golan in Basan vir mense van die stam van Manasse. Hier volg die wet wat Moses aan die Israeliete voorgehou het. Dit is die bepalings, die vaste voorskrifte en beslissings wat hy met hulle uittog uit Egipte vir hulle afgekondig het oorkant die Jordaan in die vallei teenoor Bet-Peor, in die land van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het. Moses en die Israeliete het hom verslaan met hulle uittog uit Egipte en hulle het sy land in besit geneem, asook die land van Og, die koning van Basan – die twee Amoritiese konings aan die oostekant, oorkant die Jordaan. Dit is die gebied van Aroër af op die rand van die Arnondal tot by Sioonberg – dit is Hermon – en die hele Araba, aan die oostekant van die Jordaan tot by die See van die Araba, onderkant die hange van Pisga. Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Israel, luister na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag afkondig, sodat julle dit kan hoor. Julle moet dit leer en dit nougeset nakom. Die Here ons God het met ons 'n verbond gesluit by Horeb. Dit is nie met ons voorouers wat die Here hierdie verbond gesluit het nie, maar met ons – ons hier wat vandag nog almal leef. “ Op die berg het die Here uit die vuur van aangesig tot aangesig met julle gepraat. Ek moes in daardie tyd tussen die Here en julle gaan staan om die woorde van die Here aan julle bekend te maak, want julle het bang geword vir die vuur en wou nie teen die berg opgaan nie. “Die Here het gesê, “ ‘ Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo of op die aarde hier onder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n besitlike God wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. Hou die Sabbatdag heilig soos die Here jou God jou beveel het: Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou bees en jou donkie of enige van jou diere nie, ook nie jou •vreemdeling wat by jou is nie, sodat jou slaaf en jou slavin kan rus soos jy. Jy moet onthou dat jy ook 'n slaaf was in Egipteland en dat die Here jou God met 'n sterk hand en uitgestrekte arm jou daar uitgelei het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier. Behandel jou vader en jou moeder met eerbied soos die Here jou God jou beveel het, sodat jy lank kan leef, en sodat dit met jou goed kan gaan op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, ook nie sy saaigrond, sy slaaf en sy slavin, sy bees en sy donkie, of enigiets wat aan jou naaste behoort nie.’ “ Hierdie woorde het die Here met 'n harde stem uit die vuur, wolke en diepe duisternis op die berg vir julle hele geloofsgemeenskap gesê. Hy het niks bygevoeg nie, dit op twee kliptafels gegraveer en dit vir my gegee. “ Die oomblik toe julle die stem uit die donkerte gehoor het, terwyl die berg aan die brand was, het julle, al julle stamhoofde en julle oudstes nader gekom na my toe en gesê, ‘Kyk, die Here ons God het ons sy majesteit en grootheid laat sien en ons het selfs sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons dit ervaar dat God met 'n mens praat en dat hy bly leef. Waarom moet ons dan nou sterf? Want hierdie groot vuur gaan ons verteer! As ons langer moet luister na die stem van die Here ons God, gaan ons sterf. Trouens, is daar enige mens wat al soos ons die stem van die lewende God gehoor het terwyl Hy uit die vuur praat, en bly leef het? Gaan jy nader en luister na alles wat die Here ons God sê, dan kan jy weer vir ons alles sê wat die Here ons God vir jou gesê het. Ons sal luister en dit doen.’ “Die Here het duidelik gehoor wat julle sê toe julle met my gepraat het. Die Here het vir my gesê, ‘Ek het die woorde wat hierdie volk vir jou gesê het, duidelik gehoor. Alles wat hulle gesê het, is goed. Was hulle gesindheid maar so dat hulle ontsag vir My gehad en al my gebooie al die jare nagekom het, sodat dit altyd met hulle en hulle kinders goed kan gaan! Gaan sê vir hulle: “Gaan terug na julle tente toe.” Maar jy, kom staan hier by My, sodat Ek die volledige gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat jy vir hulle moet leer, aan jou kan voorhou. Hulle moet dit uitleef in die land wat Ek vir hulle gaan gee om in besit te neem.’ “Daarom moet julle dit nougeset nakom, soos wat die Here julle God julle beveel het. Julle mag nie na links of regs afwyk nie. Julle moet die hele pad volg, soos die Here julle God julle beveel het, sodat julle kan leef en dit met julle goed kan gaan – ja, sodat julle lank kan leef in die land wat julle in besit gaan neem. “ Dit dan is die gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat die Here julle God my beveel het om julle te leer, dat julle dit kan uitleef in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem – sodat jy ontsag mag hê vir die Here jou God, deur al sy vaste voorskrifte en gebooie wat ek jou beveel, na te kom so lank jy leef, jy en jou kinders en jou kleinkinders, en sodat jy 'n lang lewe mag hê. Jy moet luister, Israel; kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan en dat julle baie meer mag word soos wat die Here die God van jou voorouers jou beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning.” “ Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. “ Wanneer die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, moet jy oppas dat jy nie die Here vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. “Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; want die Here jou God wat in julle midde is, is 'n besitlike God. Anders sal die toorn van die Here jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg. Julle mag nie die Here julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie. “ Julle moet die gebooie van die Here julle God sorgvuldig nakom, sy bepalings en vaste voorskrifte wat Hy jou opgedra het. Jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die Here, sodat dit met jou goed kan gaan en jy in die goeie land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, kan ingaan en dit in besit kan neem deur al jou vyande voor jou te verjaag, soos die Here beloof het. “Wanneer jou kind in die toekoms vir jou vra, ‘Wat is die bedoeling van die bepalings, die vaste voorskrifte en beslissings wat die Here ons God vir julle voorgeskryf het?’ dan moet jy vir jou kind sê, ‘Ons was slawe vir die farao in Egipte, maar die Here het ons met 'n sterk hand uit Egipte uitgelei. Die Here het in Egipte voor ons oë groot en skrikwekkende tekens van mag en wondertekens gedoen aan die farao en sy hele huis. Maar ons het Hy daarvandaan uitgelei sodat Hy ons hierheen kon bring om aan ons die land te gee wat Hy met 'n eed aan ons voorvaders beloof het. Die Here het ons beveel om volgens al hierdie vaste voorskrifte te leef en om vir die Here ons God ontsag te hê, sodat dit altyd met ons goed sal gaan en sodat Hy ons in die lewe sal hou soos dit vandag is. Dit sal tot ons heil strek as ons hierdie hele gebod nougeset nakom in die teenwoordigheid van die Here ons God, soos Hy ons beveel het.’ ” “ Wanneer die Here jou God jou in die land bring waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uitdryf, sewe nasies wat groter en magtiger is as jy – die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete – en die Here jou God hulle aan jou oorlewer en jy hulle verslaan, dan moet jy hulle beslis met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle 'n ooreenkoms aangaan nie en jy mag hulle nie genadig wees nie. Jy mag nie met hulle ondertrou nie. Jou dogter mag jy nie gee aan sy seun en sy dogter mag jy nie vir jou seun as vrou neem nie, want hulle sal jou seun van die Here afvallig maak, sodat hy ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen julle ontbrand en sal Hy jou gou uitdelg. “ Nee, so moet julle met hulle maak: Hulle altare moet julle afbreek, hulle gedenkstene moet julle stukkend slaan, hulle asjeras moet julle stukkend kap en hulle godebeelde moet julle verbrand, want jy is 'n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees. “ Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met 'n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit 'n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom; maar hulle wat Hom verwerp, vergeld Hy direk deur hulle te vernietig. Daar is geen uitstel vir dié wat Hom verwerp nie: Hy vergeld hulle direk. “Daarom moet jy die gebod, die vaste voorskrifte en wette nakom wat ek jou vandag beveel om te onderhou. As beloning daarvoor dat julle hierdie wette gehoorsaam, dit nakom en dit uitvoer, sal die Here jou God vir jou die verbond en troue liefde in stand hou wat Hy aan jou voorvaders met 'n eed bevestig het. Hy sal jou liefhê, jou seën en jou laat vermeerder. Hy sal die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond – jou koring, •nuwe wyn en olie – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee seën op die grond wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Jy sal meer geseënd wees as al die volke: Daar sal by jou geen onvrugbare man of vrou wees nie, ook nie by jou diere nie. Die Here sal elke siekte van jou wegkeer en Hy sal al die verskriklike peste van Egipte wat jy ken, nie oor jou bring nie, maar dit oor al jou vyande laat kom. “ Jy moet al die volke wat die Here jou God aan jou gaan oorgee, verdelg. Jy mag hulle nie jammer kry nie. Jy mag hulle gode nie dien nie, want dit sal vir jou 'n valstrik wees. Jy sou kon dink, hierdie nasies is groter as ek, hoe kan ek hulle verdryf? Jy mag egter nie vir hulle bang wees nie. Hou goed in gedagte wat die Here jou God aan die farao en die hele Egipte gedoen het: die groot teistering wat jy met jou eie oë gesien het, die tekens van mag en wondertekens, die sterk hand en uitgestrekte arm waarmee die Here jou God jou uitgelei het. So sal die Here jou God ook maak met al die volke vir wie jy bang is. Die Here jou God sal ook paniek onder hulle saai, totdat dié wat oorgebly het en vir jou wegkruip, vernietig is. Moenie paniekerig raak oor hulle nie, want die Here jou God is in jou midde, 'n groot en ontsagwekkende God. “Die Here jou God sal hierdie nasies geleidelik voor jou uitdryf. Jy sal nie toegelaat word om vinnig 'n einde aan hulle te maak nie, sodat die wilde diere van die veld nie vir jou te veel word nie. Die Here jou God sal hierdie nasies aan jou oorgee. Hy sal onder hulle groot verwarring veroorsaak, totdat hulle uitgedelg is. Hy sal hulle konings in jou hand gee en jy sal hulle name tot niet maak onder die hemel. Niemand sal voor jou kan standhou nie, totdat jy hulle uitgedelg het. “Die beelde van hulle gode moet julle verbrand. Jy mag nie die silwer en goud daarop begeer of vir jou vat nie. Anders trap jy daarmee in 'n strik, want daardie goud en silwer is vir die Here jou God afstootlik. Jy mag nie so iets verderfliks in jou huis invat nie, want dan is jy self, soos daardie goed, ook onder die ban. Jy moet dit grondig verafsku en 'n diep weersin daarin hê, want dit is onder die banvloek.” “ Elke gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, moet julle nougeset nakom, sodat julle kan leef en meer word en in die land ingaan wat die Here met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, en dit in besit neem. Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here. Vir hierdie veertig jaar het die klere aan jou lyf nie verslyt nie en het jou voete nie geswel nie. “ Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die Here jou God jou opvoed soos 'n man sy seun opvoed. Kom daarom die gebooie van die Here jou God na deur sy paaie te volg en ontsag vir Hom te hê, want die Here jou God gaan jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterryke dale, fonteine en ondergrondse water wat in die valleie en op die berge uitvloei; 'n land met koring en gars, met wingerde, vyebome en granaatboorde, 'n land met olieryke olywe en heuning; 'n land waar jy nie in armoede brood sal eet nie, ja, waar jy geen gebrek sal hê nie; 'n land waar die klippe ystererts is en waar jy kopererts in die berge myn. Jy sal eet en versadig word en die Here jou God prys oor die goeie land wat Hy aan jou gegee het. “ Wees versigtig dat jy nie die Here jou God vergeet deur nie sy gebooie, sy beslissings en vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom nie. Wees versigtig dat, wanneer jy eet en versadig word en goeie huise bou en bewoon, en jou beeste en kleinvee vermeerder, en jy vir jouself baie silwer en goud verkry, en alles wat jy het, meer word, dat jou hart dan nie hoogmoedig raak en jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. Dit is Hy wat jou gelei het deur die groot en vreesaanjaende woestyn vol giftige slange en skerpioene, 'n dor land waar daar geen water is nie; Hy wat vir jou water uit klipharde rots laat kom het; Hy wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorouers nie geken het nie, om jou nederig te maak en jou te toets, om jou uiteindelik goed te behandel. “As jy sou dink, my krag en my magtige hand het vir my hierdie rykdom verkry, dan moet jy die Here jou God onthou, want dit is Hy wat vir jou die krag gee om rykdom te verkry, sodat Hy sy verbond wat Hy aan jou voorvaders met 'n eed bevestig het, gestand kan doen soos dit vandag is. As dit dan wel sou gebeur dat jy die Here jou God vergeet en agter ander gode aanloop en hulle dien en voor hulle in aanbidding buig, dan waarsku ek julle vandag dat julle beslis tot niet sal gaan. Soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, sal julle ook tot niet gaan, net omdat julle nie na die stem van die Here julle God geluister het nie.” “ Luister, Israel! Jy trek vandag oor die Jordaan om nasies wat groter en magtiger is as jy te gaan verdryf. Daar is groot stede wat hemelhoog versterk is; daar is mense wat groot en lank is – die Enakiete, wat jy self ken en van wie jy self gehoor het dat mense sê, ‘Wie kan stand hou voor die Enakiete?’ Jy moet vandag weet dat die Here jou God, Hy wat voor jou oor die Jordaan gaan, 'n verterende vuur is. Hy self sal hulle uitdelg, ja, Hy self sal hulle voor jou verneder, sodat jy hulle sal verdryf en vinnig vernietig, soos wat die Here jou beloof het. “ Wanneer die Here jou God hulle voor jou verjaag, moet jy nie in jou hart sê, op grond van my regverdigheid het die Here my in hierdie land ingebring om dit in besit te neem nie. Dit is omdat hierdie nasies goddeloos is dat die Here hulle voor jou uit verdryf, en nie op grond van jou regverdigheid of opregte hart nie, dat jy ingaan om hulle land in besit te neem. Dit is vanweë die goddeloosheid van hierdie nasies dat die Here jou God hulle voor jou uit verdryf, en sodat Hy die belofte gestand kan doen wat Hy met 'n eed bevestig het aan jou voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. Jy moet besef dat dit nie op grond van jou regverdigheid is dat die Here jou God vir jou hierdie goeie land gaan gee om dit in besit te neem nie, want jy is 'n hardnekkige volk. “Onthou, ja, moenie vergeet nie – jy het die Here jou God vertoornd gemaak in die woestyn. Van die dag dat jy uit Egipteland weggetrek het totdat julle op hierdie plek aangekom het, was julle voortdurend in opstand teen die Here. Ook by Horeb het julle die Here vertoornd gemaak. Die Here was so toornig op julle dat Hy julle wou uitdelg. Toe ek teen die berg opgegaan het om die kliptafels te ontvang, die tafels met die verbond wat die Here met julle gesluit het, het ek veertig dae en nagte lank op die berg gebly sonder om brood te eet of water te drink. Die Here het vir my die twee kliptafels gegee, gegraveer met die vinger van God. Daarop was al die woorde soos die Here dit vir julle op die berg op die dag van die byeenkoms uit die vuur gesê het. Toe die Here aan die einde van veertig dae en nagte vir my die twee kliptafels gegee het, die tafels met die verbond daarop, het die Here vir my gesê, ‘Staan op, gaan dadelik hiervandaan af onder toe, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het hulle wangedra. Hulle het gou afgewyk van die pad wat Ek hulle beveel het om te volg. Hulle het vir hulle 'n gegote beeld gemaak.’ Die Here het ook vir my gesê, ‘Ek het hierdie volk dopgehou. Kyk, dit is 'n hardnekkige volk. Laat My begaan, sodat Ek hulle kan uitdelg en hulle naam onder die hemel uitwis. Ek sal jou dan 'n nasie maak wat magtiger en meer is as hulle.’ “Ek het omgedraai en van die berg afgegaan terwyl die berg aan die brand was. Die twee tafels met die verbond was op my twee hande. Ek sien toe, julle het inderdaad gesondig teen die Here julle God. Julle het vir julle 'n kalf, 'n gegote beeld, gemaak! Julle het vinnig afgewyk van die pad wat die Here vir julle voorgeskryf het. Ek het die twee tafels vasgevat en van my twee hande af neergesmyt. Ek het hulle voor julle oë stukkend gebreek. Ek het myself voor die Here neergewerp soos die eerste keer en veertig dae en nagte lank geen brood geëet en geen water gedrink nie, oor al julle sondes wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uit te tart. Ja, ek het gevrees vir die toorn en woede van die Here, wat so vertoornd was vir julle dat Hy julle sou uitdelg. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister. Die Here was selfs op Aäron so toornig dat Hy hom wou verdelg, maar ek het in daardie tyd ook vir Aäron ingetree. “Die stuk sonde wat julle gemaak het, daardie kalf van julle, het ek gevat en verbrand. Ek het dit verbrysel en heeltemal fyngestamp, totdat dit so fyn was soos stof. Ek het die stof toe in die spruit gegooi wat van die berg af kom. Ook by Tabera en Massa en Kibrot-Taäwa het julle die Here vertoornd gemaak. En toe die Here julle van Kades-Barnea af gestuur het met die woorde, ‘Trek op en neem die land in besit wat Ek vir julle gee,’ was julle opstandig teen die bevel van die Here julle God. Julle het Hom nie vertrou nie en nie na sy stem geluister nie. Julle was voortdurend in opstand teen die Here van die dag af dat ek julle leer ken het. “ Ek het my voor die Here neergewerp. Die veertig dae en veertig nagte lank wat ek so bly lê het omdat die Here gesê het Hy gaan julle uitdelg, het ek tot die Here gebid en gesê, ‘ Here my Heer, moet tog nie u volk, u eiendom wat U in u grootheid vrygekoop het en wat U uit Egipte uitgelei het met 'n sterk hand, uitroei nie. Dink aan u diensknegte, aan Abraham, Isak en Jakob. Moet tog nie ag slaan op die hardkoppigheid van hierdie volk en op hulle oortredings en sonde nie. Anders sê die land waarvandaan U ons uitgelei het: “Omdat die Here hulle nie kon inbring in die land wat Hy hulle beloof het nie, en omdat Hy 'n weersin in hulle het, het Hy hulle uitgelei om hulle in die woestyn te laat sterf.” Hierdie mense is tog u volk, u eiendom wat U met u groot krag en u uitgestrekte arm uitgelei het.’ ” “In daardie tyd het die Here vir my gesê, ‘Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes, en klim teen die berg op na My toe. Maak ook vir jou 'n houtkis. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, dié wat jy aan stukke gebreek het. Jy moet dit dan in die kis sit.’ “ Ek het toe 'n kis van doringhout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes uitgekap. Daarna het ek teen die berg opgegaan met die twee tafels by my. Die Here het toe op die tafels, met dieselfde skrif as die vorige, die Tien Gebooie geskryf wat Hy op die berg uit die vuur vir julle aangekondig het, die dag van die byeenkoms. Die Here het dit vir my gegee en ek het omgedraai en van die berg afgegaan. Ek het die tafels in die ark wat ek gemaak het, gesit; en daar het dit gebly soos die Here my beveel het.” Die Israeliete het weggetrek van die putte by Bene-Jaäkan en was op pad na Moserot. Daar is Aäron oorlede. Hy is ook daar begrawe en sy seun Eleasar het in sy plek priester geword. Van daar het hulle na Gudgod getrek en van Gudgod na Jotbat, 'n gebied met waterryke dale. In daardie tyd het die Here die stam van Levi afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om in diens te staan van die Here, om aan Hom diens te lewer en in sy Naam seën uit te spreek; dit is vandag nog so. Daarom het die Leviete nie 'n aandeel of erfenis saam met hulle volksgenote nie. Die Here, Hy is hulle erfdeel, soos wat die Here jou God vir hulle gesê het. “Ek self het soos die eerste keer veertig dae en nagte lank op die berg gereed gestaan. Die Here het ook hierdie keer na my geluister. Die Here wou julle nie vernietig nie. Die Here het vir my gesê, ‘Maak jou gereed om voor die volk uit verder te trek, sodat hulle die land kan ingaan en dit in besit neem, die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’ ” “ Daarom dan, Israel, wat anders vra die Here jou God van jou as om vir die Here jou God ontsag te hê, om al sy paaie te volg, om Hom lief te hê en die Here jou God te dien met hart en siel, om die gebooie van die Here en sy vaste voorskrifte na te kom wat ek vandag vir jou voorskryf, sodat dit met jou goed kan gaan? Kyk, aan die Here jou God behoort die hemelruim, ook die hoogste hemele, die aarde en alles wat daarop is. Slegs aan julle voorouers het die Here Hom verbind om hulle lief te hê. En Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, gekies uit al die volke soos dit vandag is. Besny die voorhuid van julle harte en moenie langer hardnekkig wees nie. Die Here is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God wat onpartydig is en geen omkoopgeskenk aanvaar nie, wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan •vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee. Julle moet vreemdelinge liefhê, want julle was self vreemdelinge in Egipteland. “Vir die Here jou God moet jy ontsag hê – Hom moet jy dien, aan Hom moet jy vashou en slegs in sy Naam moet jy sweer. Hy is die Een wat jy moet loof en Hy is jou God wat aan jou hierdie groot en ontsagwekkende dade gedoen het wat jy met jou eie oë gesien het. Met net sewentig persone het jou voorouers na Egipte afgegaan; maar nou het die Here jou God jou so talryk gemaak soos die sterre aan die hemelruim.” “ Jy moet die Here jou God liefhê en die verpligtinge wat Hy oplê, altyd nakom – sy vaste voorskrifte, sy beslissings en gebooie. Julle moet vandag weet dat dit nie oor julle kinders gaan nie. Hulle ken nie die opvoeding deur die Here julle God en het dit nie ervaar nie: sy grootheid, sy sterk hand en uitgestrekte arm, sy tekens van mag en sy dade wat Hy in die hart van Egipte aan die farao, die Egiptiese koning, en sy hele land gedoen het, en wat Hy gedoen het aan die Egiptiese leër, aan hulle perde en strydwaens waaroor Hy die water van die Rietsee laat stroom het toe hulle julle agtervolg het, en hoe die Here hulle uitgewis het – dit is vandag nog so – en wat Hy vir julle in die woestyn gedoen het totdat julle op hierdie plek aangekom het; en wat Hy gedoen het aan Datan en Abiram, die seuns van Eliab, die nasaat van Ruben, toe die grond sy mond oopgesper en hulle verswelg het saam met hulle huisgesinne en tente en al die lewende hawe agter hulle aan, in die teenwoordigheid van die hele Israel. Nee, dit was julle oë wat al die groot dade van die Here, alles wat Hy vermag, gesien het. Kom dan die hele gebod na wat ek vandag vir jou voorskryf, sodat julle sterk kan wees en ingaan en die land waarheen julle oortrek, kan verower om dit as erfenis te verkry, en sodat julle lank kan leef op die grond wat die Here aan julle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle en hulle nageslag te gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Want die land waarheen jy nou op pad is om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waarvandaan julle weggetrek het nie – 'n land waar jy jou saad gesaai en met leivore natgelei het soos 'n groentetuin. Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is 'n land met berge en valleie; dit drink reënwater uit die hemel. Dit is 'n land waarvoor die Here jou God bly sorg. Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar. “ As julle goed luister na my gebooie wat ek vandag vir julle voorskryf, naamlik om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese, dan sê die Here, ‘Ek sal die reën van julle land op tyd gee, die vroeë en die laatreëns, sodat jy jou koring en jou •nuwe wyn en olie kan insamel. En Ek sal vir jou diere weiding in jou veld gee en jy sal eet en versadig raak.’ “ Wees versigtig dat julle harte nie verlei word en julle wegdraai en ander gode dien en in aanbidding voor hulle buig nie. Die toorn van die Here sal teen julle ontbrand en Hy sal die hemel sluit sodat daar nie reën is en die grond nie sy opbrengs lewer nie en julle vinnig verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gaan gee. “ Koester hierdie woorde van my met hart en siel. Bind dit as 'n teken om julle hande en laat dit versierings op julle voorkoppe wees. Leer dit vir julle kinders deur daaroor te praat wanneer jy in jou huis sit en op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte, sodat julle en julle kinders baie jare lank kan leef op die grond wat die Here met 'n eed aan julle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, so baie as wat die jare van die hemelruim bo die aarde is. “ Ja, as julle hierdie hele gebod wat ek vir julle voorskryf, sorgvuldig nakom deur dit uit te voer, die Here julle God lief te hê, al sy paaie te volg en aan Hom vas te hou, dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uitdryf. Julle sal nasies wat groter en magtiger is as julle, verdryf. Elke plek waar julle voetsole trap – aan julle sal dit behoort. Van die woestyn af tot by die Libanon en van die rivier af, die Eufraatrivier, tot by die see in die weste sal julle grondgebied wees. Niemand sal voor julle standhou nie. Die Here julle God sal, soos Hy julle beloof het, op elke plek in die land wat julle betree, vrees en angs vir julle laat posvat. “ Kyk, ek hou vandag seën en vloek aan julle voor: die seën wanneer julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek vandag vir julle voorskryf, en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die pad wat ek julle vandag beveel, deur agter ander gode wat julle nie geken het nie, aan te loop. “ Wanneer die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, moet jy die seën plaas op die berg Gerisim en die vloek op die berg Ebal. Lê hulle nie oorkant die Jordaan, anderkant die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Araba woon, teenoor Gilgal by die akkerbome van Morê nie? Omdat julle oor die Jordaan trek om die land wat die Here julle God vir julle gaan gee, te verower, en omdat julle dit in besit sal neem en daarin sal woon, moet julle al die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag aan julle voorhou, nougeset nakom.” “ Hier volg die vaste voorskrifte en beslissings wat julle nougeset moet nakom in die land wat die Here, die God van jou voorouers, vir jou gegee het om as erfenis te besit solank as wat julle op die grond leef. Al die aanbiddingsplekke op die hoë berge, op die heuwels en onder elke skaduryke boom, waar die nasies vir wie julle gaan verdryf hulle gode dien, moet julle heeltemal vernietig. Julle moet hulle altare afbreek, hulle gedenkstene stukkend slaan, hulle asjeras verbrand en die beelde van hulle gode stukkend kap. Julle moet hulle naam uit daardie plek uitroei. Julle mag die Here julle God nie op so 'n manier dien nie. Slegs by die plek wat die Here julle God uit al julle stamme sal kies om sy Naam daar te vestig as sy woonplek, mag julle na sy wil vra; daarheen moet jy gaan. Daarheen moet julle julle •brandoffers, •maaltydoffers, tiendes en •wydingsgeskenke, julle •gelofte-offers en vrywillige gawes, en die eersgeborenes van julle beeste en kleinvee neem. Daar, in die teenwoordigheid van die Here julle God, moet julle eet. Julle moet bly wees, julle en julle huisgesinne, oor alles waaraan julle die hand kon waag en waarmee die Here jou God jou geseën het. Julle moenie daar maak soos ons nou hier maak nie – elkeen na goeddunke. Want julle het nou nog nie by die rusplek en erfenis aangekom wat die Here jou God vir jou gaan gee nie. Maar wanneer julle die Jordaan oorgesteek het, en in die land woon wat die Here julle God vir julle as erfenis gaan gee, en Hy vir julle rus gee van al julle vyande in die omtrek, en julle veilig woon, dan moet dit gebeur op die plek wat die Here julle God kies om daar sy Naam te vestig. Daarheen moet julle gaan met alles wat ek julle beveel: julle brandoffers en maaltydoffers, julle tiendes en wydingsgeskenke, asook al julle besondere gelofte-offers wat julle aan die Here beloof. Julle moet vol vreugde wees in die teenwoordigheid van die Here julle God, julle en julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne, en die Leviete wat in julle dorpe is omdat hulle geen aandeel of erfenis saam met julle het nie. Wees versigtig dat jy nie jou brandoffers sommer op enige plek wat jy sien, bring nie. Slegs op die plek wat die Here kies by een van jou stamme, daar moet jy jou brandoffers bring en daar moet jy alles doen wat ek jou beveel. Jy mag wel slag soveel as waarvoor jy lus het, en vleis eet volgens die mate waarin die Here jou God jou geseën het in al jou dorpe. •Onrein en rein persone mag dit eet, soos in die geval van 'n gasel en 'n rooitakbok. Net die bloed mag julle nie eet nie. Op die grond moet julle dit laat uitloop soos water. “ Jy word nie toegelaat om in jou dorpe die tiendes van jou koring te geniet nie, ook nie van jou •nuwe wyn en olie, die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, enige gelofte-offer wat jy aan die Here beloof het, of jou vrywillige offers en wydingsgeskenke nie. Slegs in die teenwoordigheid van die Here jou God, op die plek wat Hy kies, mag jy dit eet – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne en die Leviete wat in jou dorpe is. Jy moet vol vreugde wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand gewaag het. Let daarop dat jy nie die Leviete in die steek laat solank as wat jy op jou grond is nie. “ Wanneer die Here jou God jou gebied uitbrei soos Hy jou beloof het, en jy dink, ek sal graag vleis wil eet, omdat jy daarvoor lus het, dan mag jy maar soveel vleis eet as wat jy begeer. As die plek wat die Here jou God kies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, dan mag jy, soos ek jou beveel het, van die beeste en kleinvee slag wat die Here vir jou gegee het. Jy mag in jou dorpe eet soveel as wat jou hart begeer. Jy moet dit egter eet soos wat 'n gasel of rooitakbok geëet word. Onrein en rein persone mag dit saam eet. Wees net daarop bedag om glad nie die bloed te eet nie, want die bloed is die lewe en jy mag nie die lewe saam met die vleis eet nie. Jy mag dit nie eet nie; jy moet dit op die grond laat uitloop soos water. Jy mag dit nie eet nie, sodat dit met jou goed kan gaan en met jou kinders ná jou; want jy doen dan wat reg is in die oë van die Here. Die •heilige gawes wat jy het en jou gelofte-offers moet jy egter neem en net na die plek wat die Here sal kies, gaan. Jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, op die altaar van die Here jou God offer. Die bloed van jou maaltydoffers moet teen die altaar van die Here jou God uitgegooi word, maar die vleis mag jy eet. “ Jy moet al hierdie woorde wat ek jou opdra, nougeset gehoorsaam, sodat dit vir altyd goed sal gaan met jou en jou kinders ná jou, want dan doen jy wat goed en reg is in die oë van die Here jou God. “ Wanneer die Here jou God die nasies uitroei waarheen jy nou op pad is om hulle voor jou uit te dryf, sal jy, nadat jy hulle verdryf het, in hulle land woon. Wees versigtig dat jy, nadat hulle voor jou uitgedelg is, nie in dieselfde strik trap as hulle en dat jy nie oor hulle gode navraag doen nie deur te sê, ‘Hoe dien hierdie nasies hulle gode? Ek wil ook so offer.’ Jy mag nie so offer vir die Here jou God nie, want alles wat vir die Here afstootlik is, waarin Hy 'n weersin het, offer hulle vir hulle gode. Ja, hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters vir hulle gode. “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle nougeset nakom. Jy mag daar niks byvoeg en niks daarvan weglaat nie.” “ Wanneer 'n profeet of iemand wat drome droom by jou opstaan en vir jou 'n teken of wonder voorspel, en die teken of wonder waaroor hy met jou gepraat het, gebeur en hy dan sê, ‘Ons moet ander gode volg wat jy nie ken nie en hulle dien,’ dan mag jy nie na die woorde van daardie profeet of die een wat die droom gedroom het, luister nie; want die Here julle God toets julle om te sien of julle met julle hele hart en julle hele wese die Here julle God liefhet. Julle moet die Here julle God volg, vir Hom moet julle ontsag hê en sy gebooie nakom. Na sy stem moet julle luister, en Hom moet julle dien, en aan Hom moet julle vashou. Daardie profeet, of die een wat drome droom, moet doodgemaak word; want hy het wat vals is, verkondig oor die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het en julle vrygekoop het uit die plek van slawerny. Dit is net om jou weg te lok van die pad wat die Here jou God jou beveel het om te volg. Jy moet die kwaad by jou uitroei. “ Wanneer jou eie broer, of jou seun of dogter, of jou geliefde vrou, of jou boesemvriend jou in die geheim aanhits en sê, ‘Kom ons gaan dien ander gode’ – dit is nou gode wat jy self of jou voorouers nie geken het nie, van die gode van die volke om julle, of hulle nou naby jou is of ver van jou af, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde – dan mag jy nie aan hom toegee en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry of jou oor hom ontferm of hom wegsteek nie. Nee, jy moet hom beslis om die lewe bring. Jou hand moet die eerste wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. Jy moet hom stenig, sodat hy sterf, want hy het probeer om jou van die Here jou God af weg te lok, van Hom wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Die hele Israel sal dit hoor en bang wees. Hulle sal nie weer hierdie verkeerde daad by jou doen nie. “Wanneer jy in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou gaan gee om in te woon, hoor dat daar gesê word, ‘Booswigte by jou het na vore getree en die inwoners van hulle dorp weggelok met die woorde: “Kom ons gaan dien ander gode” ’ – dit is nou gode wat julle nie geken het nie – dan moet jy op die saak ingaan. Jy moet ondersoek instel en noukeurig navraag doen. As dit wel waar is, as die saak vasstaan dat daar iets so afstootliks by jou gebeur het, moet jy beslis die inwoners van daardie dorp tref met die skerpte van die swaard. Jy moet die dorp, almal wat daarin is, ook die vee, deur die skerpte van die swaard met die banvloek tref. Alles wat in die dorp buitgemaak is, moet jy in die middel van die dorpsplein bymekaarbring. Dan moet jy die dorp en alles wat buitgemaak is, as 'n volledige offer aan die Here jou God verbrand. Dit moet vir altyd 'n puinhoop wees; dit mag nie weer herbou word nie. Daar mag niks van die bangoed in jou hande agterbly nie, sodat die Here se brandende toorn kan bedaar en Hy aan jou barmhartigheid kan bewys. Hy sal Hom oor jou ontferm en jou laat vermeerder, soos Hy aan jou voorvaders met 'n eed beloof het, as jy na die stem van die Here jou God luister deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom, deur te doen wat reg is in die oë van die Here jou God.” “ Julle is kinders van die Here julle God. Julle mag nie julleself stukkend sny of 'n kaal plek op julle voorkoppe maak ter wille van 'n afgestorwene nie; want jy is vir die Here jou God 'n heilige volk, en jou het die Here uitgekies om as volk sy persoonlike eiendom te wees onder al die volke op aarde. “Jy mag nie enigiets afstootliks eet nie. Dit is die diere wat julle mag eet: beeste, skape en bokke; rooitakbokke, gaselle, hartbeeste, klipbokke, waterbokke, witgemsbokke en bergskape. Enige dier wat volledig gesplete hoewe het en wat ook herkou, dié mag julle eet. Maar die volgende onder die diere wat herkou of gesplete hoewe het, mag julle egter nie eet nie: die kameel, die haas en die dassie; want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. Hulle is beslis •onrein vir julle. En ook nie die vark nie; want hy het gesplete hoewe, maar herkou nie. Hy is onrein vir julle. Van hulle vleis mag julle glad nie eet nie en aan hulle karkasse mag julle nie raak nie. Hulle is beslis vir julle onrein. “Dit is wat julle mag eet van alles wat in die water is: Alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet; maar enigiets wat nie vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Dit is onrein vir julle. “Julle mag enige rein voël eet; maar dit is die voëls wat julle nie mag eet nie: “gewone arende, breëkop-arende; swartaasvoëls; edelvalke, valke en alle soorte jakkalsvoëls; alle soorte kraaie; steenuile, ooruile; seemeeue; alle soorte kleinvalkies, naguiltjies, grasuile, nonnetjiesuile; bontkraaie; Egiptiese aasvoëls en visarende, ooievaars en alle soorte reiers; hoep-hoepe en vlermuise. “Alle vlieënde insekte is onrein vir julle; dit mag nie geëet word nie. Alle rein vlieënde voëls mag julle wel eet. “Julle mag geen karkas eet nie. Vir •vreemdelinge in jou dorpe kan jy dit gee, hulle mag dit eet; of jy kan dit verkoop aan buitelanders. Jy is immers 'n heilige volk vir die Here jou God. “Jy mag nie 'n bokkie kook in sy ma se melk nie.” “ Jy moet jaar ná jaar presies een tiende van die volle opbrengs saad wat jou saailande oplewer, eenkant hou. Jy moet 'n tiende van jou koring, •nuwe wyn en olie, sowel as die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig, sodat jy kan leer om altyd ontsag te hê vir die Here jou God. “ Maar as die afstand vir jou te groot is, as jy dit nie kan dra nie, omdat die Here jou God jou geseën het en omdat die plek wat die Here jou God gaan kies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, moet jy dit in silwer omsit en met die silwer toegebind in 'n sak, na die plek gaan wat die Here jou God sal kies. Betaal dan met die silwer vir alles wat jou hart begeer, vir beeste en kleinvee, vir wyn en sterk drank, ja vir alles waarvoor jy lus het, en eet dit daar voor die Here jou God, en wees bly, jy en jou huisgesin. “Die Leviete wat in jou dorpe is – jy mag hulle nie vergeet nie; want hulle het geen aandeel of erfenis saam met jou nie. Aan die einde van drie jaar moet jy van daardie jaar se opbrengs die volle tiende bring en dit in die dorpspoorte neersit. Omdat die Leviete geen aandeel of erfenis saam met jou het nie, kan hulle sowel as die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees in jou dorpe, dan kom en eet en versadig raak, sodat die Here jou God jou kan seën in alles wat jy aanpak.” “Aan die einde van die sewende jaar moet jy 'n kwytskelding toestaan. En dit is hoe die saak van kwytskelding moet verloop: Elke skuldeiser moet dit wat hy aan sy naaste geleen het, kwytskeld. Hy mag nie druk uitoefen op sy naaste, sy volksgenoot nie, want 'n kwytskelding van die Here is afgekondig. Op 'n buitelander mag jy druk uitoefen, maar wat jou volksgenoot skuld, moet jy kwytskeld. Daar behoort egter nie behoeftiges by jou te wees nie, want die Here sal jou ryklik seën in die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem; maar slegs as jy aandagtig luister na die stem van die Here jou God deur hierdie hele gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom. “ Wanneer die Here jou God jou seën soos Hy jou beloof het, sal jy aan baie nasies uitleen, maar self sal jy nie leen nie. Jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie. “ As daar tog in jou land, wat die Here jou God aan jou gaan gee, in een van jou dorpe 'n behoeftige persoon is, een van jou volksgenote, dan moet jy nie jou hart verhard nie en nie jou hand toehou vir jou behoeftige volksgenoot nie. Nee, jy moet jou hand vir hom wyd oopmaak en aan hom leen sonder voorbehoud, soveel as wat hy nodig het, wat ook al sy behoefte is. “Wees versigtig dat daar nie in jou hart die slinkse gedagte opkom om te dink, die sewende jaar, die jaar van kwytskelding kom nader nie, en jy dan jou oë sluit vir jou behoeftige volksgenoot en jy nie vir hom iets gee nie. Hy sal hom op die Here beroep teen jou, en dan staan jy skuldig. Gee milddadig aan hom; en wanneer jy vir hom gee, moet dit nie met 'n teensinnige hart wees nie. Om hierdie rede sal die Here jou God jou immers seën in al jou werk, in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, behoeftiges sal nie uit die land verdwyn nie. Daarom beveel ek jou: Maak jou hand wyd oop vir jou volksgenoot, vir die magtelose en die behoeftige in jou land.” “Wanneer jou volksgenoot, 'n Hebreeuse man of vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien en in die sewende jaar moet jy hom as 'n vry man van jou af laat weggaan. Wanneer jy hom dan as 'n vry man van jou af wegstuur, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie. Jy moet vir hom ruim voorsien uit jou kleinvee, van jou dorsvloer en van jou wynpers. Van alles waarmee die Here jou God jou geseën het, moet jy vir hom gee. Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipteland en dat die Here jou God jou vrygekoop het; daarom gee ek jou vandag hierdie opdrag. “ As dit egter sou gebeur dat die skuldslaaf, omdat hy jou en jou huisgesin liefhet en omdat dit vir hom goed was by jou, vir jou sê, ‘Ek wil nie van jou af weggaan nie,’ moet jy 'n els vat en dit deur sy oor en in die deur steek. Dan is hy vir altyd jou slaaf. Doen dieselfde met jou slavin. “Jy moet nie daarteen opsien om hom as 'n vry man van jou af te laat weggaan nie, want in die ses jaar wat hy jou gedien het, was hy vir jou twee maal soveel werd as 'n huurarbeider. Die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.” “Elke manlike eersteling wat onder jou beeste en kleinvee gebore word, moet jy aan die Here jou God wy. Jy mag nie met die eerstelinge van jou beeste werk verrig of die eerstelinge van jou kleinvee skeer nie. In die teenwoordigheid van die Here jou God moet jy hulle elke jaar gaan eet op die plek wat die Here sal kies, jy en jou huisgesin. Maar as 'n dier 'n gebrek het, mank of blind is of enige ander ernstige gebrek het, mag jy dit nie aan die Here jou God offer nie. In jou dorpe mag jy dit eet; •onrein en rein persone mag dit eet, soos in die geval van 'n gasel en 'n rooitakbok. Slegs die bloed mag jy nie eet nie. Op die grond moet jy dit soos water laat uitloop.” “ Hou by die voorskrif vir die maand Abib en vier die Pasga vir die Here jou God, want in die maand Abib het die Here jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei. Jy moet vir die Here jou God die •Pasgaoffer, kleinvee of beeste, slag op die plek wat die Here sal kies om sy Naam daar te vestig. Jy mag nie brood met suurdeeg daarmee saam eet nie. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, brood van verdrukking, omdat jy inderhaas uit Egipteland vertrek het, sodat jy daardie dag toe jy uit Egipteland vertrek het, jou hele lewe lank kan onthou. Daar mag sewe dae lank nie suurdeeg in jou hele gebied te sien wees nie. Daar mag ook nie van die vleis wat jy die eerste aand geslag het, tot die oggend oorstaan nie. Jy word nie toegelaat om die Pasgaoffer te slag in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou gaan gee nie, behalwe op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. Slag die Pasgaoffer die aand teen sononder, op dieselfde tyd as wat jy uit Egipte vertrek het. Jy moet dit kook en eet op die plek wat die Here jou God sal kies. Die volgende môre kan jy na jou woonplekke terugkeer. Ses dae lank moet jy ongesuurde brood eet. Op die sewende dag is daar 'n gewyde rusdag ter ere van die Here jou God. Jy mag dan geen werk doen nie. “ Sewe weke moet jy aftel. Vandat 'n sekel in die staande graan kom, moet jy sewe weke begin aftel. Daarna vier jy die Fees van die Weke ter ere van die Here jou God, met soveel as wat jy vrywillig gee, in die mate wat die Here jou God jou seën. Jy moet bly wees voor die Here jou God – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete in jou dorpe, die •vreemdelinge en die vaderloses en weduwees by jou – op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. Jy moet onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Kom dan hierdie vaste voorskrifte nougeset na. “Die Huttefees moet jy sewe dae lank vier wanneer jy die opbrengs van die dorsvloer en wynpers ingesamel het. Jy moet vol vreugde wees tydens jou fees – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete, die vreemdelinge en die vaderloses en weduwees in jou dorpe. Sewe dae lank moet jy fees vier ter ere van die Here jou God op die plek wat die Here sal kies; want die Here jou God sal jou seën in jou hele oes en al die werk van jou hande, sodat jy net blydskap kan ervaar. “Drie keer per jaar moet al die manlike persone by jou voor die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal kies: tydens die Fees van die Ongesuurde Brood, tydens die Fees van die Weke en tydens die Huttefees. Hulle mag nie met leë hande voor die Here verskyn nie. Elkeen moet kom met 'n eie geskenk, volgens die mate waarin die Here jou God jou geseën het.” “Jy moet in verhouding tot jou stamme vir jou regters en opsieners aanstel in al die dorpe wat die Here jou God jou gaan gee. Hulle moet oor die volk regspreek met regverdige beslissings. Jy mag nie die reg verdraai nie, jy mag nie partydig wees nie en jy mag nie omkoopgeskenke aanvaar nie; want 'n omkoopgeskenk verblind die oë van wyses en verdraai die woorde van regverdiges. Geregtigheid, ja, geregtigheid moet jy nastreef, sodat jy kan leef en die land in besit kan neem wat die Here jou God vir jou gaan gee.” “ Jy mag nie vir jou 'n asjera, enige stuk hout, plant langs die altaar van die Here jou God wat jy vir jouself maak nie. Jy mag nie vir jou 'n gedenksteen waarin die Here jou God 'n weersin het, oprig nie.” “ Jy mag nie vir die Here jou God 'n bul of 'n stuk kleinvee offer waaraan daar 'n gebrek is nie – enigiets ernstigs – want dit is afstootlik vir die Here jou God. “ As daar by jou, in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou gaan gee, 'n man of vrou betrap word wat doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God, deurdat die persoon sy verbond oortree en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig – voor die son of die maan of enige van die hemelligame, iets wat die Here nie beveel het nie – en dit word aan jou oorvertel of jy kom dit te hore, dan moet jy deeglik op die saak ingaan. As dit inderdaad waar is en dit staan vas dat so iets afstootliks in Israel gedoen is, dan moet jy daardie man of vrou wat die verkeerde daad gedoen het, uitbring na die dorpspoort – man of vrou. Jy moet hulle stenig, sodat hulle sterf. Op grond van die verklaring van twee of drie getuies moet die veroordeelde tereggestel word. Hy mag nie tereggestel word op grond van die verklaring van net een getuie nie. Die getuies se hand moet die eerste wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. Jy moet die kwaad by jou uitroei.” “Wanneer 'n saak vir jou te moeilik is om te beoordeel, soos bloedwraak, eise en teeneise, geweldpleging deur vergelding en regsgeskille in julle poorte, moet jy gereedmaak en opgaan na die plek wat die Here jou God sal kies. Jy moet na die Levitiese priesters en die regter gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en hulle raadpleeg. Hulle sal aan jou die uitspraak oor die regsaak bekend maak. Jy moet optree volgens die uitspraak wat hulle aan jou bekend maak op daardie plek wat die Here sal kies. Jy moet nougeset handel volgens alles wat hulle jou leer. Presies volgens die uitleg wat hulle vir jou gee en die beslissing wat hulle jou meedeel, moet jy optree. Jy mag van die uitspraak wat hulle aan jou bekend maak, nie links of regs afwyk nie. “Die man wat verwaand optree, en nie die priester wat daar in diens van die Here jou God staan of die regter gehoorsaam nie, daardie man moet sterf. Jy moet die kwaad in Israel uitroei. Die hele volk sal dit hoor en ontsag hê en nie weer verwaand wees nie.” “Wanneer jy in die land aankom wat die Here jou God vir jou gaan gee, en dit in besit neem en jou daarin vestig en sê, ‘Ek, Israel, wil 'n koning oor my aanstel soos al die nasies wat om my is,’ dan moet jy beslis 'n koning oor jou aanstel wat die Here jou God kies. Uit jou volksgenote moet jy 'n koning oor jou aanstel. Dit is ontoelaatbaar om 'n vreemde persoon wat nie jou volksgenoot is nie, oor jou aan te wys. Hy mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Die Here self het vir julle gesê, ‘Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie.’ “Die koning mag ook nie vir hom baie vroue aanskaf nie, sodat sy hart nie van die Here afwyk nie. Van silwer en goud mag hy ook nie te veel aanskaf nie. “Wanneer hy op sy koninklike troon sit, moet hy van hierdie wet, wat in besit van die Levitiese priesters is, vir hom 'n afskrif skryf in 'n •boekrol. Hy moet dit by hom hou en hy moet sy lewe lank daaruit lees sodat hy kan leer om vir die Here sy God ontsag te hê, om al die woorde van hierdie wet te onderhou, hierdie voorskrifte na te kom, homself nie hoër te ag as sy volksgenote nie, en nie links of regs af te wyk van die gebod nie. Dan sal hy 'n lang tyd oor sy koninkryk in Israel heers, hy en ook sy nageslag.” ‘‘ Die Levitiese priesters, die hele stam van Levi, sal nie 'n aandeel of erfenis hê saam met Israel nie. Van die besondere gawes aan die Here en van wat aan Hom behoort, moet hulle leef. Hulle sal geen erfdeel saam met hulle volksgenote ontvang nie. Die Here is hulle erfdeel, soos Hy hulle beloof het. Die priesters is geregtig op die volgende van die kant van die volk wanneer hulle offer, of dit nou 'n bees of kleinvee is: Hulle moet vir die priesters die blad, die twee wange en die maag gee. Die eerste opbrengs van jou koring, jou •nuwe wyn en jou olie, asook die eerste skeersel van jou kleinvee moet jy vir hulle gee; want Levi is deur die Here jou God gekies uit al jou stamme, sodat hy altyd in die Naam van die Here kan dien, hy en sy nageslag. “Wanneer 'n Leviet uit een van jou dorpe waar hy tydelike verblyf het, uit enige deel van Israel, kom, en hy uit vrye wil gaan na die plek wat die Here sal kies, en hy daar in die Naam van die Here sy God diens doen soos al sy stamgenote, die Leviete wat daar voor die Here dien, dan moet hy 'n gelyke aandeel kry om van te leef, ongeag wat die verkoop van sy familiebesit opgelewer het. ” “ Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy nie die afstootlike gebruike van daardie nasies aanleer nie. Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer, of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of 'n towenaar is nie, wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here afstootlik. En dit is oor hierdie afstootlike dinge dat die Here jou God hulle voor jou verdryf. Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God. Ja, hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na hulle wat voortekens lees en voorspellings maak; maar wat jou betref, die Here jou God laat jou so iets nie toe nie. “'n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die Here jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister. Dit is eintlik wat jy van die Here jou God by Horeb op die dag van die byeenkoms gevra het, toe jy gesê het, ‘Ek kan nie langer na die stem van die Here my God luister en ook nog na hierdie groot vuur bly kyk nie – ek wil nie sterf nie.’ Die Here het toe vir my gesê, ‘Wat hulle sê is goed, Ek sal vir hulle uit hulle volksgenote 'n profeet soos jy laat opstaan, en Ek sal my woorde in sy mond lê. Hy sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. En van die persoon wat nie luister na my woorde wat hy in my Naam sê nie, sal Ek self rekenskap eis. Maar die profeet wat so vermetel is om 'n woord in my Naam te sê wat Ek hom nie beveel het om te sê nie, of wat in die naam van ander gode praat – daardie profeet moet sterf.’ “En as jy jouself sou afvra: Hoe sal ons weet watter woorde het die Here nie gesê nie? As dit wat 'n profeet in die Naam van die Here sê, nie gebeur nie en daar kom niks van nie, dan is dit woorde wat die Here nie gespreek het nie. In vermetelheid het die profeet dit gesê. Jy mag nie vir hom bang wees nie.” “ Wanneer die Here jou God die nasies uitroei wie se land die Here jou God vir jou gaan gee, en jy hulle verdryf en in hulle stede en huise gaan woon, dan moet jy drie stede afsonder binne die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem. Bepaal die afstande en verdeel dan die grondgebied van jou land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gee in drie dele, sodat elkeen wat manslag gepleeg het, daarheen kan vlug. “Die volgende reëling geld vir dié wat manslag gepleeg het en daarheen vlug om te bly leef: Dit moet iemand wees wat 'n medemens sonder voorbedagte rade doodgeslaan het. Hy moes nie voor die tyd 'n wrok teen hom gekoester het nie. Iemand gaan byvoorbeeld saam met sy vriend in die bos in om hout te kap, en wanneer hy sy arm swaai om die boom af te kap, glip die kop van die byl van die steel af en tref die ander man, sodat hy sterf. So iemand moet na een van hierdie stede kan vlug om te bly leef. Anders sit die bloedwreker, terwyl sy hart ontsteld is, die een agterna wat manslag gepleeg het en haal hom in, omdat die afstand te groot is. Hy slaan dan die persoon dood, en dit terwyl die persoon die dood nie verdien het nie. Hy het immers nie voorheen teen die ander een 'n wrok gekoester nie. Dit is waarom ek jou beveel, ‘Jy moet vir jou drie stede afsonder.’ “As die Here jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het – en Hy sal vir jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou voorvaders te gee, as jy hierdie hele gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset nakom deur die Here jou God lief te hê en altyd sy paaie te volg – dan moet jy by hierdie drie stede nog drie voeg. Dan sal daar nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee nie, en daar sal nie bloedskuld op jou rus nie. “As iemand egter teen sy medemens 'n wrok koester, hom voorlê, hom oorval en hom so slaan dat hy sterf, en dan na een van hierdie stede vlug, moet die oudstes van sy stad hom daar laat haal en hom aan die bloedwreker oorgee. Hy moet sterf. Jy mag hom nie jammer kry nie. Jy moet die stort van onskuldige bloed in Israel uitroei; dan sal dit met jou goed gaan.” “Jy mag nie jou naaste se grens verskuif wat die voorgeslagte afgebaken het op jou erfenis wat jy gaan ontvang in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem nie. “ Daar mag nie net een persoon as getuie optree teen iemand in verband met enige misstap, enige sonde of misdaad wat hy begaan het nie. Slegs op gesag van twee of drie getuies sal 'n saak vasstaan. “As 'n kwaadwillige getuie opstaan en 'n vals verklaring teen iemand aflê, moet die twee wat die geskilpunt het, in die teenwoordigheid van die Here gaan staan, voor die priesters en regters wat daar in dié tyd sal wees. Die regters moet dan noukeurig ondersoek doen, en as dit blyk dat die getuie inderdaad 'n valse getuie is wat vals teen sy volksgenoot getuig het, dan moet julle met hom doen wat hy beplan het om aan sy volksgenoot te doen. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Die ander moet dit hoor, sodat hulle bang word en nie weer so 'n verkeerde daad by jou doen nie. Jy mag hom nie jammer kry nie. Dit is 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet. ” “ Wanneer jy vir 'n geveg uittrek teen jou vyande, en jy sien perde en strydwaens en meer manskappe as jy, moet jy nie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God, wat jou uit Egipteland laat optrek het, is by jou. Wanneer julle nader beweeg vir die geveg, moet 'n priester na vore tree en die manskappe toespreek. Hy moet vir hulle sê, ‘Luister, Israel, julle gaan vandag betrokke raak in 'n geveg met julle vyande. Moenie lafhartig wees nie; moenie bang wees, haastig omspring of beangs raak oor hulle nie. Dit is immers die Here julle God wat saam met julle gaan om vir julle teen julle vyande te veg, om julle te laat wen.’ “Dan moet die opsieners die manskappe toespreek, ‘Wie het 'n nuwe huis gebou en dit nog nie in gebruik geneem nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en neem iemand anders dit in gebruik. Wie het 'n wingerd geplant en nog nie self die eerste vrugte daarvan geniet nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en geniet iemand anders daarvan. Wie is aan 'n vrou verloof en het haar nog nie geneem nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en neem 'n ander man haar.’ “Die opsieners moet verder ook die manskappe toespreek en sê, ‘Wie bang en lafhartig is, laat hy teruggaan na sy huis sodat hy nie sy volksgenote se harte laat ineenkrimp soos syne nie.’ Wanneer die opsieners dan die manskappe klaar toegespreek het, moet hulle •aanvoerders van leërafdelings as hoofde oor die manskappe aanwys. “ Wanneer jy by 'n stad kom om daarteen oorlog te voer, moet jy vir die stad die vredesvoorwaardes uitroep. As die stad jou antwoord, ‘Vrede!’ en vir jou die poorte oopmaak, dan is al die mense in die stad tot jou beskikking vir dwangarbeid en moet hulle jou dien. As hulle egter nie met jou wil vrede maak nie, maar teen jou wil oorlog voer, dan moet jy die stad beleër. Wanneer die Here jou God dit in jou hand gee, moet jy al die manlike inwoners met die skerpte van die swaard neervel. Slegs die vroue en kinders, die diere en alles wat in die stad is, al die buit daarin, mag jy vir jouself vat. Jy mag eet wat buitgemaak is van jou vyande, wat die Here jou God aan jou gee. So moet jy maak met al die stede wat baie ver van jou af lê, wat nie deel is van die stede van hierdie nasies hier rond nie. Uit die stede van hierdie volke wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, mag jy egter niemand wat asemhaal, laat leef nie; maar jy moet hulle, soos die Here jou God jou beveel het, volledig met die banvloek tref: die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Julle moet dit doen, sodat hulle julle nie leer om al hulle afstootlike gebruike wat hulle vir hulle gode beoefen, na te doen en julle sodoende teen die Here julle God sondig nie. “Wanneer jy 'n stad lank beleër en daarteen oorlog voer om dit te verower, moet jy die bome nie verwoes deur die byl in te lê nie, want jy moet daarvan eet; jy mag dit nie afkap nie. Is die bome in die veld dan mense dat hulle deur jou toedoen by die beleg betrek moet word? Slegs bome waarvan jy seker is dat jy nie daarvan kan eet nie, dié mag jy verwoes en afkap en daarmee beleëringswerke oprig teen die stad wat teen jou oorlog maak, totdat die stad tot 'n val kom.” “Wanneer iemand afkom op 'n lyk wat in die veld lê, op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem, maar dit is nie bekend wie die persoon doodgeslaan het nie, moet jou oudstes en regters uitgaan en die afstand meet na die dorpe wat rondom die lyk is. En die dorp wat die naaste is aan die lyk, die oudstes van daardie dorp moet 'n vers vat waarmee nog nie geploeg is nie, wat nog nie onder die juk was nie. Die oudstes van daardie dorp moet met die vers afgaan na 'n standhoudende spruit waar daar nie geploeg of gesaai word nie. Daar by die spruit moet hulle die vers se nek breek. Dan moet die Levitiese priesters nader kom, want die Here jou God het juis hulle uitgekies om Hom te dien en om in die Naam van die Here te seën. Hulle uitsprake beslis alle gevalle van twis en geweldsmisdaad. Al die oudstes van daardie dorp wat die naaste aan die lyk is, moet hulle hande was bo-oor die vers waarvan die nek by die spruit gebreek is. Hulle moet dan verklaar en sê, ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet en ons oë het dit nie gesien nie. Skeld u volk Israel, wat U verlos het, kwyt, Here. Laat die bloedskuld van 'n onskuldige tog nie op u volk Israel rus nie. ’ Dan sal hulle van bloedskuld kwytgeskeld word. Jy moet self die stort van onskuldige bloed by jou uitroei, want dan doen jy wat reg is in die oë van die Here. ” “ Wanneer jy teen jou vyande uittrek om oorlog te voer, en die Here jou God gee hulle in jou hand, sodat jy van hulle as gevangenes wegvoer, en jy sien onder die gevangenes 'n mooi vrou en jy raak geheg aan haar, dan mag jy met haar trou. Wanneer jy haar in jou huis inbring, moet sy haar hare afsny en haar naels knip. Sy moet ook ontslae raak van die klere waarin sy gevange geneem is. Dan kan sy in jou huis bly en 'n maand lank rou oor haar vader en moeder. Eers daarna mag jy by haar ingaan en haar man word; sy sal dan jou vrou wees. As dit dalk gebeur dat jy later nie meer sin in haar het nie, moet jy haar laat gaan waarheen sy wil. Jy mag haar glad nie verkoop nie. Jy mag haar nie as eiendom beskou nie, aangesien jy haar verneder het. “ Wanneer 'n man twee vroue het, die een geliefd en die ander nie-geliefd, en die geliefde en die nie-geliefde bring albei vir hom seuns in die wêreld, en die eersgeborene is die seun van die nie-geliefde, kan hy nie, wanneer hy sy seuns sy besittings laat erf, die seun van die geliefde vrou die eersgeborene maak ten koste van die seun van die nie-geliefde, die eersgeborene, nie. Nee, die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde, moet hy erken deur aan hom 'n dubbele deel te gee van alles wat hy besit. Hy is immers die eersteling van sy manlike krag. Die eersgeboortereg is syne. “As iemand 'n koppige en opstandige seun het wat nie na sy vader en moeder wil luister nie, en hulle straf hom, maar hy wil steeds nie na hulle luister nie; moet sy vader en moeder hom gryp en hom uitneem na die oudstes van sy dorp, na die poort van sy woonplek. Hulle moet vir die oudstes van sy dorp sê, ‘Hierdie seun van ons is koppig en opstandig. Hy wil nie na ons luister nie. Hy is roekeloos en 'n drinker.’ Dan moet al die manne van die dorp hom met klippe doodgooi, sodat hy sterf. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Die hele Israel moet dit hoor sodat hulle bang word.” “As iemand 'n sonde begaan wat die doodstraf verdien, en hy gedood word en jy hom aan 'n houtpaal hang, mag sy lyk nie die nag aan die paal bly hang nie; maar jy moet hom beslis daardie selfde dag nog begrawe. Iemand wat aan 'n paal gehang word, is immers 'n vervloekte by God. Jy mag nie jou grondgebied wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, verontreinig nie. “ Jy mag nie toekyk hoe jou volksgenoot se bees of kleinvee ronddwaal en jou dan afsydig hou nie. Jy moet hulle beslis na jou volksgenoot terugvat. As jou volksgenoot nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy die diere by jou huis hou. Dit moet by jou bly totdat jou volksgenoot dit kom soek en dan moet jy dit vir hom teruggee. Jy moet dieselfde doen met sy donkie en dieselfde doen met sy oorkleed. Ja, jy moet so maak met alle verlore goedere van jou volksgenoot – wat ook al hy vermis en wat jy vind. Jy mag jou nie afsydig hou nie. Jy mag nie toekyk hoe jou volksgenoot se donkie of bees in die pad lê en jou dan afsydig hou nie. Jy moet beslis saam met hom die dier ophelp. “ Mansklere mag nie deur 'n vrou gedra word nie, en 'n man mag nie 'n vrou se oorkleed aantrek nie, want almal wat dit doen, is afstootlik vir die Here jou God. “ As jy langs die pad in enige boom of op die grond op 'n voëlnes met kuikens of eiers afkom, terwyl die ma op die kuikens of die eiers sit, mag jy nie die ma saam met die kleintjies vat nie. Jy moet die ma beslis vrylaat, maar die kleintjies mag jy vir jou vat. Doen dit sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag leef. “ As jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling bo om die dak aanbring sodat jy nie bloedskuld op jou huis laai wanneer iemand daar afval nie. “ Jy mag nie twee soorte saad in jou wingerd saai nie; anders word die volle oes heilig – die oes van die saad wat jy gesaai het, sowel as die opbrengs van die wingerd. “Jy mag nie ploeg met 'n bees en 'n donkie in dieselfde span nie. “Jy mag nie gemengde vesel – wol en linne tegelyk – dra nie. “Jy moet vir jou tossels maak aan die vier hoeke van die bedekking waarmee jy jou toemaak.” “ 'n Man neem dalk 'n vrou, gaan by haar in, kry daarna 'n weersin in haar, en beskuldig haar dan vals en gee haar 'n slegte naam deur te sê, ‘Ek het hierdie vrou geneem, maar toe ek met haar omgang gehad het, het ek nie by haar die bewys van maagdelikheid gekry nie.’ Dan moet die vader en moeder van die jong vrou die bewys van haar maagdelikheid vat en dit vir die oudstes van die dorp na die poort bring. Die vader van die jong vrou moet dan vir die oudstes sê, ‘My dogter het ek aan hierdie man as vrou gegee, maar hy het 'n weersin in haar gekry. En kyk, nou is hy die een wat haar vals beskuldig deur te sê: “Ek het nie by jou dogter die bewys van maagdelikheid gekry nie.” Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die kledingstuk voor die oudstes van die dorp oopsprei. Die oudstes van daardie dorp moet daardie man vat en hom straf. Hulle moet hom 'n boete van honderd silwerstukke oplê en dit vir die jong vrou se vader gee omdat die man 'n maagd uit Israel 'n slegte naam gegee het. Sy moet sy vrou wees. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef. “ Maar as hierdie beskuldiging waar is, as maagdelikheid nie by die jong vrou gekry is nie, dan moet hulle haar uitbring na die ingang van haar vader se huis en die manne van die dorp moet haar met klippe doodgooi, sodat sy sterf, omdat sy 'n gruweldaad gepleeg het in Israel deur in haar vader se huis te hoereer. Jy moet die kwaad by jou uitroei. “ As 'n man betrap word dat hy met 'n getroude vrou gemeenskap het, moet albei sterf: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het en ook die vrou. Jy moet die kwaad in Israel uitroei. “ As 'n jong vrou, 'n maagd, verloof is aan 'n man en iemand ontmoet haar in die dorp en het met haar gemeenskap, dan moet julle hulle al twee na daardie dorp se poort uitbring en hulle met klippe doodgooi, sodat hulle sterf – die jong vrou omdat sy nie in die dorp uitgeroep het nie en die man omdat hy die vrou van sy naaste verneder het. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Maar as die man die jong vrou wat verloof is, in die veld kry en haar gryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterf. Aan die jong vrou mag jy nie iets doen nie. Sy het nie 'n sonde begaan wat die dood verdien nie, want in hierdie geval is dit dieselfde as wanneer 'n man sy naaste oorval en die persoon vermoor. Hy het haar immers in die veld gekry; die jong verloofde vrou het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie. “ As 'n man 'n jong vrou, 'n maagd wat nie verloof is nie, in die veld kry en haar vasgryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, moet die man wat met haar gemeenskap het, vir die jong vrou se vader vyftig silwerstukke gee. Sy moet dan sy vrou wees, omdat hy haar verneder het. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef. “'n Man mag nie 'n vrou van sy vader neem nie. Hy mag nie die naaktheid ontbloot wat aan sy vader behoort nie. “ 'n Man wie se testikels stukkend gedruk of wie se geslagsorgaan afgesny is, mag nie in die byeenkoms van die Here kom nie. “'n Israeliet gebore uit 'n verbode verbintenis mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie, selfs die tiende geslag ná hom mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie. 'n Ammoniet en Moabiet mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie. Selfs tot die tiende geslag ná hulle mag nooit in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie, want hulle het julle, toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte, nie met brood en water te hulp gekom nie, en ook omdat hulle Bileam, die seun van Beor, uit Petor in Aram-Naharajim gehuur het om jou te vervloek. Maar die Here jou God was nie bereid om na Bileam te luister nie, en die Here jou God het die vloek vir jou in 'n seën verander, omdat die Here jou God jou liefhet. Solank as wat jy leef, mag jy nooit hulle voorspoed en welsyn bevorder nie. “Jy mag nie 'n afkeer hê van 'n Edomiet nie, want hy is jou broer. Jy mag nie 'n afkeer hê van 'n Egiptenaar nie, want jy was 'n •vreemdeling in sy land. Die derde geslag wat van hulle afstam, mag in die geloofsgemeenskap van die Here kom. “Wanneer jy met 'n leër uittrek teen jou vyande, moet jy jou weerhou van enigiets onbehoorliks. As daar by jou 'n man is wat nie rein is nie oor iets wat in die nag gebeur het, moet hy uit die kamp uitgaan. Hy mag nie binne-in die kamp wees nie. Wanneer dit aand word, moet hy hom met water afspoel en as die son onder is, mag hy in die kamp ingaan. “Jy moet 'n plek buite die kamp hê sodat jy daarheen kan uitgaan. Daar moet 'n tentpen by jou toerusting wees. Wanneer jy buite op jou hurke wil gaan sit, moet jy daarmee 'n gat grawe en jou ontlasting weer bedek. Die Here jou God is immers saam met jou daar in jou kamp om jou uit te red en jou vyande aan jou oor te gee. Jou kamp moet daarom heilig wees, sodat Hy nie iets onbehoorliks by jou sien en jou die rug toekeer nie. “Jy mag nie 'n slaaf wat van sy eienaar af na jou vlug vir sy lewe, aan sy eienaar oorhandig nie. By jou mag hy bly, by jou op 'n plek wat hy verkies, in een van jou dorpe wat hom pas. Jy mag hom nie mishandel nie. “ Daar mag nie tempelprostitute onder die vroue van Israel wees nie en daar mag ook nie manlike tempelprostitute in Israel wees nie. Die verdienste van 'n prostituut en die loon van 'n hond mag nie in die huis van die Here jou God kom om enige gelofte na te kom nie, want albei is vir die Here jou God afstootlik. “ Jy mag nie van jou volksgenote rente eis nie, nie vir geld of kos of enigiets anders waarvoor mens rente kan vra nie. Van vreemdes mag jy rente eis, maar van jou volksgenote mag jy dit nie eis nie, sodat die Here jou God jou kan seën in alles waaraan jy jou hand waag in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. “ Wanneer jy vir die Here jou God 'n gelofte aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want die Here jou God sal dit sonder twyfel van jou eis, en dan staan jy skuldig. As jy jou daarvan weerhou om 'n gelofte af te lê, sal jy nie skuldig staan nie. Maar wat oor jou lippe kom, moet jy nakom; jy moet doen soos jy aan die Here jou God beloof het. Dit was uit vrye wil dat jy die gelofte met jou eie mond uitgespreek het. “As jy in jou naaste se wingerd kom, mag jy soveel druiwe eet as wat jy wil, totdat jy versadig is; maar jy mag nie daarvan in jou houer sit nie. “As jy in die staande graan van jou naaste kom, mag jy halfryp are met die hand pluk; maar 'n sekel mag jy nie in die staande graan van jou naaste swaai nie.” “ As iemand 'n vrou neem en haar man word, en dit dan gebeur dat sy nie meer vir hom aanvaarbaar is nie, omdat hy iets onbehoorliks by haar ontdek het, moet hy vir haar 'n skeibrief skryf, dit in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur. As sy dan sy huis verlaat en met 'n ander man gaan trou, en hierdie ander man kry 'n weersin in haar, skryf vir haar 'n skeibrief, gee dit in haar hand en stuur haar weg uit sy huis, of as hierdie ander man wat haar vir hom as vrou geneem het, sterf, dan het haar eerste man wat haar weggestuur het, nie die reg om haar weer as sy vrou te neem nadat sy verontreinig is nie. Want dit is iets afstootliks vir die Here, en jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, in sonde laat verval nie. “As 'n man pas getroud is, hoef hy nie saam met die leër uit te trek of enige verpligting op hom te neem nie. Hy moet vry wees vir sy huis vir 'n volle jaar en die vrou met wie hy getroud is, gelukkig maak.” “ Niemand mag twee maalklippe, of net die boonste maalklip, as pand neem nie, want dit is die lewe self wat hy as pand neem. “ As 'n man betrap word dat hy een van sy volksgenote uit die Israeliete ontvoer, hom as sy eiendom beskou en die persoon verkoop, moet daardie ontvoerder sterf. Jy moet die kwaad by jou uitroei. “ Wees uiters versigtig in die geval van 'n uitbraak van huidsiekte om op te tree net soos die Levitiese priesters julle sal leer. Wat ek hulle beveel het, moet julle nougeset nakom. Onthou wat die Here jou God aan Mirjam gedoen het toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte. “ As jy aan jou naaste volgens ooreenkoms enigiets leen, mag jy nie in sy huis ingaan om die oorkleed wat hy as pand gee, te neem nie. Jy moet buite bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die pand buitentoe na jou bring. As die man arm is, mag jy nie met sy pand gaan slaap nie. Jy moet die pand beslis aan hom teruggee teen sononder, sodat hy in sy oorkleed kan slaap. Hy sal jou prys, en dit sal vir jou by die Here jou God geld as 'n regverdige daad. “ Jy mag nie 'n dagloner wat magteloos en behoeftig is, uitbuit nie – nie een van jou volksgenote of 'n •vreemdeling wat in jou dorpe in die land is nie. Jy moet sy loon nog dieselfde dag betaal, voor die son oor hom ondergaan, want hy is arm en hy sug daarna. Anders beroep hy hom op die Here teen jou en staan jy skuldig. “ Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie. Elkeen moet vir sy eie sonde sterf. “ Jy mag nie die reg van vreemdelinge en vaderloses verdraai nie, en jy mag nie die bokleed van 'n weduwee as pand neem nie. Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte, en dat die Here jou God jou daaruit vrygekoop het. Dit is waarom ek jou beveel om so op te tree. “Wanneer jy jou oes op die land insamel en jy vergeet 'n gerf op die land, mag jy nie teruggaan om dit te kry nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly, sodat die Here jou God al jou handewerk kan seën. Wanneer jy jou olywe afslaan, mag jy nie die takke deursoek waar jy klaar is nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. As jy jou wingerd oes, mag jy nie die naoes agter jou afoes nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipteland. Daarom beveel ek jou om so op te tree.” “ As daar tussen manne 'n geskil is en hulle kom voor die regbank, en die regters vel die vonnis deur die regverdige gelyk te gee en die skuldige te veroordeel, dan moet die regter, as die skuldige tot lyfstraf gevonnis is, hom laat lê en daar voor hom die getal houe laat toedien wat sy oortreding verdien. Veertig houe mag hy hom laat toedien, nie meer as dit nie. Anders laat hy hom dalk baie meer houe as hierdie getal toedien, en word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer. “Jy mag 'n bees nie muilband wanneer hy graan trap nie.” “ As broers by mekaar woon en een van hulle sterf sonder dat hy 'n seun nalaat, dan mag die vrou van die oorledene nie buite die familie aan 'n vreemde man behoort nie. Haar swaer moet by haar ingaan, haar as sy vrou neem en sy plig as swaer nakom. Die eersgebore seun wat sy in die wêreld bring, moet die naam van sy oorlede broer in stand hou, sodat sy naam nie uit Israel verdwyn nie. Maar as die man nie kans sien om sy skoonsuster as vrou te neem nie, moet sy na die oudstes in die poort gaan en vir hulle sê, ‘My swaer weier om vir sy broer 'n naam te laat voortleef in Israel. Hy wil nie sy plig as swaer met my nakom nie’, dan moet die oudstes van die dorp hom laat roep en hom aanspreek. As hy egter vasstaan en sê, ‘Ek sien nie kans om haar as vrou te neem nie’, dan moet sy skoonsuster, ten aanskoue van die oudstes, na hom gaan, sy sandaal van sy voet aftrek, in sy gesig spuug en getuig en sê, ‘So word gemaak met die man wat nie sy broer se huis wil opbou nie.’ In Israel kry hy dan die naam Huis van die Uitgetrekte Sandaal. “As manne met mekaar veg en die een se vrou kom nader om haar man te red van die een wat hom slaan, en sy steek haar hand uit en gryp daardie man aan sy geslagsdele, dan moet jy haar hand afkap. Jy mag haar nie jammer kry nie. “Jy mag nie in jou sak verskillende gewigte, swares en ligtes, hê nie. Jy mag ook nie in jou huis verskillende efas, 'n groter en 'n kleiner een, hê nie. Die gewigte wat jy gebruik, moet eg en reg wees; die efa wat jy gebruik, moet ook eg en reg wees, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee. Ja, elkeen wat oneerlik optree, wat sulke dinge doen, is vir die Here jou God afstootlik.” “Onthou wat die Amalekiete aan jou gedoen het toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte, dat hulle jou op die pad oorval het, en almal wat agter jou uitgesak het, neergevel het; en dit terwyl jy moeg en uitgeput was. Hulle het God nie gevrees nie. Wanneer die Here jou God dan vir jou rus gee van al jou vyande rondom jou in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om as erfdeel in besit te neem, moet jy die naam Amalek onder die hemel uitwis. Jy mag dit nie vergeet nie.” “ Wanneer jy in die land aangekom het wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem, en jy daar gevestig is, moet jy van die eerste opbrengs van al die vrugte wat jy oes op die grond van die land wat die Here jou God aan jou gee, neem en in 'n mandjie sit. Gaan dan na die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. Wanneer jy by die priester aankom wat in dié dae daar sal wees, moet jy vir hom sê, ‘Ek maak vandag aan die Here u God bekend dat ek aangekom het in die land wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ Die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit. Dan moet jy voor die Here jou God bely en sê, ‘My vader was 'n rondswerwende Arameër. Hy het na Egipte afgegaan en met min mense as 'n •vreemdeling tydelik daar gaan woon. Daar het hy 'n groot nasie geword, magtig en talryk. Maar die Egiptenare het ons sleg behandel, ons onderdruk en ons aan harde slawewerk onderwerp. Toe het ons na die Here, die God van ons voorouers, om hulp geroep. Die Here het ons gehoor en ons ellende, ons swaarkry en ons verdrukking raakgesien; en die Here het ons met 'n sterk hand en uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei, ja, met 'n vreesaanjaende magsvertoon, met tekens van mag en wondertekens. Hy het ons na hierdie plek gebring en aan ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek nou die eerste vrugte gebring van die grond wat U, Here, vir my gegee het.’ Sit dit dan voor die Here jou God neer en buig in aanbidding voor die Here jou God. Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huis gegee het – jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou is. “Wanneer jy in die derde jaar, die jaar van die tiendes, die volle tiende van jou opbrengs klaar eenkant gesit en dit ook vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee het, en hulle eet en versadig raak in julle dorpe, moet jy voor die Here jou God verklaar, ‘Ek het die •heilige gawes uit my huis verwyder en vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee in ooreenstemming met die volle opdrag wat U my gegee het. Ek het nie enige van u gebooie oortree nie, en ek het dit nie vergeet nie. Ek het nie daarvan geëet terwyl ek rou nie, en niks daarvan verwyder terwyl ek •onrein is nie. Ek het ook niks daarvan aan dooies gegee nie. Ek het na die stem van die Here my God geluister. Ek het opgetree net soos U my beveel het. Kyk tog af uit u heilige woning, uit die hemel, en seën u volk Israel en die grond wat U vir ons gegee het, net soos U dit met 'n eed beloof het aan ons voorvaders – 'n land wat oorloop van melk en heuning.’ ” “Vandag beveel die Here jou God jou om hierdie vaste voorskrifte en wette uit te voer. Jy moet dit met hart en siel nakom. Vir die Here het jy vandag jou woord gegee dat Hy jou God sal wees, dat jy sy paaie sal volg, sy vaste voorskrifte, sy gebooie en beslissings sal nakom en na sy stem sal luister. Die Here gee jou vandag sy woord dat jy as volk sy persoonlike eiendom sal wees, soos Hy jou beloof het, sodat jy al sy gebooie kan nakom. Hy sal jou bo al die nasies wat Hy gemaak het, verhoog, tot jou lof en roem en eer, en sodat jy 'n heilige volk vir die Here jou God kan wees, soos Hy beloof het.” Moses en ook die oudstes van Israel het die volk beveel: “Kom elke gebod na wat ek julle vandag beveel. Die dag wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy groot klippe regop neersit, met kalk afwit, en al die woorde van hierdie wet daarop skryf, wanneer jy oortrek, sodat jy dan die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, kan binnegaan – die land wat oorloop van melk en heuning – soos die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het. Sodra julle oor die Jordaan is, moet julle hierdie klippe, waaroor ek nou vir julle opdrag gee, regop neersit op die berg Ebal en dit met kalk afwit. Bou dan daar 'n altaar vir die Here jou God, 'n klipaltaar. Jy mag nie die klippe met yster bewerk nie. Met onbewerkte klippe moet jy die altaar vir die Here jou God bou. Jy moet •brandoffers vir die Here jou God daarop bring. Jy moet ook •maaltydoffers bring en dit daar eet, en vol vreugde wees voor die Here jou God. Jy moet al die woorde van hierdie wet baie duidelik op die klippe skryf.” Moses en ook die Levitiese priesters het vir die hele Israel gesê: “Wees stil en luister, Israel. Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. Jy moet na die stem van die Here jou God luister en sy gebooie en sy vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, uitvoer.” Moses het die volk op daardie dag beveel: “Wanneer julle die Jordaan oorsteek, moet hierdie stamme op die berg Gerisim gaan staan om die volk te seën: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. En hierdie stamme moet op die berg Ebal gaan staan met die oog op die vervloeking: Ruben, Gad, Aser en Sebulon, Dan en Naftali. Die Leviete moet daarop verklaar en hardop vir elke Israeliet sê, “ ‘Vervloek is die mens wat 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld maak – iets wat vir die Here afstootlik is, die handewerk van 'n vakman – en dit in die geheim êrens oprig.’ Die hele volk moet dan antwoord en ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat sy vader en moeder minag.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat sy naaste se grens verskuif.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat 'n blinde op die pad mislei.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat die •vreemdeling, vaderlose en weduwee se reg verdraai.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die naaktheid ontbloot wat aan sy vader behoort.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat met enige dier gemeenskap het.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat met sy suster, die dogter van sy vader of moeder, gemeenskap het.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat met sy skoonmoeder gemeenskap het.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat sy naaste in die geheim doodslaan.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat 'n omkoopgeskenk aanvaar om 'n persoon wat onskuldig is aan bloedvergieting, dood te slaan.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê. “ ‘Vervloek is die een wat die woorde van hierdie wet nie bevestig deur dit uit te leef nie.’ En die hele volk moet ‘Amen’ sê.” “ As jy aandagtig luister na die stem van die Here jou God deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die Here jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die Here jou God: “Geseënd sal jy wees in die dorp en geseënd sal jy wees in die veld! Geseënd die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond en die vrug van jou diere – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee! Geseënd jou mandjie, en jou knieskottel! “Geseënd sal jy wees wanneer jy terugkeer en geseënd sal jy wees wanneer jy uittrek. Die Here sal jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan. Met een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie sal hulle voor jou uit vlug. “Die Here sal vir jou seën stuur – in jou graanskure en in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy vir jou gaan gee. “Die Here sal jou vestig as 'n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met 'n eed beloof het. As jy die gebooie van die Here jou God nakom en sy paaie volg, sal al die volke van die aarde sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal ontsag vir jou hê. Op die grond wat die Here aan jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, sal die Here aan jou ryke oorvloed skenk met die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. Die Here sal vir jou sy goeie skatkamer, die hemel, oopmaak om die reën van jou land op tyd vir jou te gee en al jou handewerk te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal self nie hoef te leen nie. Die Here sal jou die kop maak, nie die stert nie. Jy sal net na bo beweeg, nie na onder nie, as jy gehoorsaam is aan die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag opdra om noukeurig na te kom. Van al die gebooie wat ek julle vandag opdra, mag jy nie links of regs afwyk deur agter ander gode aan te loop en hulle te dien nie. “As jy egter nie na die stem van die Here jou God luister deur al sy gebooie en vaste voorskrifte wat ek vandag vir julle voorskryf, nougeset na te kom nie, sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou tref: “Vervloek sal jy wees in die dorp en vervloek sal jy wees in die veld. “Jou mandjie en jou knieskottel sal vervloek wees. “Die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond, die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee, sal vervloek wees. “Vervloek sal jy wees wanneer jy terugkeer en vervloek sal jy wees wanneer jy uittrek.” “ Die Here sal vervloeking, ontsteltenis en bedreigings oor jou stuur, oor alles waaraan jy jou hand waag, wat jy ook al doen, totdat jy uitgedelg is, en vinnig verdwyn, omdat jy Hom deur jou bose dade verlaat het. Die Here sal pessiekte aan jou laat kleef, totdat Hy jou uitgeroei het, weg van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. Die Here sal jou tref met uittering, ontsteking, koors, hittekoors, met droogte, skroeisiekte en witroes; dit sal jou teister totdat jy tot niet is. Die hemelruim bo jou kop sal brons wees en die aarde onder jou yster. Die Here sal die reën van jou land stof maak; ja, fynsand sal uit die hemelruim op jou neerreën totdat jy uitgedelg is. “ Die Here sal daarvoor sorg dat jy voor jou vyande verslaan word. Met een pad sal jy teen hulle uittrek, en met sewe paaie voor hulle uit vlug. Jy sal 'n skrikwekkende voorbeeld wees vir al die koninkryke van die aarde. Jou lyke sal aas wees vir al die voëls van die hemel en die diere van die land, en niemand sal hulle verwilder nie. “Die Here sal jou tref met Egiptiese swere, swelsels, uitslag en skurfsiekte waarvan jy nie sal kan genees nie. Die Here sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en sinsverwarring, en jy sal helder oordag rondtas soos 'n blinde in die donker. Jy sal nie voorspoedig wees met wat jy onderneem nie, maar altyd net verdruk wees en beroof word, en daar sal geen helper wees nie. “Aan 'n vrou sal jy verloof raak, en 'n ander man sal haar onteer. 'n Huis sal jy bou, en nie daarin woon nie. 'n Wingerd sal jy plant, en die eerste vrugte daarvan nie geniet nie. Jou bees word voor jou oë geslag, en jy eet nie daarvan nie. Jou donkie word reg voor jou gesteel, en jy kry hom nie terug nie. Jou kleinvee word aan jou vyande gegee, en niemand sal jou help nie. Jou seuns en jou dogters word aan 'n ander volk gegee, terwyl jy dit moet aanskou. Elke dag verlang jy na hulle, maar jy is magteloos. Die vrug van jou grond, ja, al jou moeitevolle arbeid – 'n volk wat jy nie ken nie, sal dit verslind. Jy sal die hele tyd net verdruk en mishandel word. Jy sal van jou kop af raak oor die toneel wat voor jou oë afspeel. Die Here sal jou tref met dodelike swere aan jou knieë en bene waarvan jy nie sal kan genees nie – van jou voetsool tot jou kroontjie. “Die Here sal jou en jou koning wat jy oor jou aanstel, laat wegvoer na 'n nasie wat jy en jou voorouers nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien, hout en klip. Jy sal 'n skrikbeeld, 'n spreuk en 'n spotnaam word by al die volke waarheen die Here jou verdryf. “ Jy sal baie saad na die landerye neem, maar min oes; want treksprinkane sal dit kaal vreet. Wingerde sal jy plant en bewerk, maar jy sal nie wyn drink of druiwe oes nie; want wurms sal dit opvreet. Jy sal olyfbome hê in jou hele grondgebied, maar olie sal jy nie aan jou smeer nie; want jou olywe sal afval. “Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want hulle sal in ballingskap gaan. “Al jou bome en die vrugte van jou grond – vlieënde insekte sal dit inneem. “Die •vreemdeling wat by jou is, sal bo jou uitstyg, al hoër en hoër; en jy sal daal, al laer en laer. Hy sal aan jou leen, maar jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop word en jy die stert. “Al hierdie vloeke sal oor jou kom, jou volg en jou inhaal, totdat jy uitgedelg is, omdat jy nie na die stem van die Here jou God geluister het deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat Hy vir jou voorgeskryf het, na te kom nie. Hierdie vervloeking sal by jou wees as 'n herinnerings- en waarskuwingsteken en ook by jou nageslag, vir altyd. Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en 'n blye hart gedien het oor al die oorvloed nie, sal jy jou vyande wat die Here teen jou uitstuur, dien te midde van hongersnood en dors, en in naaktheid en volslae gebrek. En jou vyand sal 'n ysterjuk op jou nek sit, totdat hy jou uitgedelg het. Die Here sal teen jou 'n nasie bring, van ver, van die einde van die aarde af, wat afduik soos 'n arend, 'n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, 'n nasie met strak gesigte wat 'n oumens nie ontsien en vir 'n jongmens geen genade het nie. Daardie nasie sal die vrug van jou vee en die vrug van jou grond verslind, totdat jy uitgedelg is; ja, hy sal vir jou nie koring, •nuwe wyn en olie, kalwers of lammers laat oorbly nie, totdat hy jou vernietig het. Hy sal jou beleër in al jou stadspoorte, totdat jou hoë, versterkte stadsmure waarop jy vertrou, oral in jou hele land intuimel. Ja, hy sal jou beleër in al jou stadspoorte in jou hele land wat die Here jou God vir jou gegee het. Tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister, sal jy die vrug van die moederskoot eet, die vleis van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God vir jou gegee het. Die saggeaarde en besonder fynbesnaarde man by jou, sal sy eie broer, sy geliefde vrou en die res van sy kinders wat hy nog oor het, onderlangs aankyk, sonder om vir een van hulle iets te gee van die vleis van sy kinders wat hy eet, omdat daar vir hom niks anders oor is nie, tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister in al jou stadspoorte. Die saggeaarde en fynbesnaarde vrou by jou wat dit nooit eers sou waag om haar kaal voet op die grond te sit nie, omdat sy te fynbesnaard en delikaat is, sal haar geliefde man, haar seun en haar dogter onderlangs aankyk, ook haar nageboorte wat uit haar liggaam kom en haar kinders wat sy kry; want sy sal hulle, by gebrek aan alles, in die geheim eet tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister in jou stadspoorte. “As jy nie al die woorde van hierdie wet wat in hierdie •boekrol geskryf is, nougeset nakom en sodoende ontsag toon vir hierdie eervolle en ontsagwekkende Naam, vir die Here jou God nie, sal die Here jou en jou nageslag met buitengewone plae tref – groot en durende plae, ernstige en durende siektes. Hy sal al die siektes van Egipte waarvoor jy bang is, laat terugkeer, en dit sal aan jou kleef. Ook elke siekte en elke plaag wat nie geskryf staan in die boekrol met hierdie wet nie, sal die Here oor jou bring totdat jy uitgedelg is. “In plaas daarvan dat julle so baie soos die sterre aan die hemelruim is, sal daar min van julle oorbly, omdat jy nie na die stem van die Here jou God geluister het nie. Soos die Here daarin vreugde gevind het om julle goed te behandel en julle te laat vermeerder, so sal Hy vreugde daarin vind om julle tot niet te maak en julle uit te delg. Julle sal weggeruk word van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, en die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde. Daar sal jy ander gode dien, hout en klip, wat jy of jou voorouers nie geken het nie. By daardie nasies sal jy nie rus vind nie. Daar sal nie 'n rusplek vir jou voetsool wees nie. Die Here sal daar vir jou 'n hart vol angs, kwynende oë en 'n lewe van wanhoop gee. Jou lewe sal voor jou aan 'n draadjie hang; jy sal dag en nag in vrees leef en nie jou lewe seker wees nie. Oor die vrees waarmee jy in jou hart leef en oor die toneel wat hom voor jou oë afspeel, sal jy in die oggend sê, ‘Ag, was dit maar aand!’ En teen die aand sal jy sê, ‘Ag, was dit maar oggend!’ Die Here sal jou na Egipte laat terugkeer in skepe, die pad waarvan ek vir jou gesê het, ‘Jy sal dit nooit weer sien nie.’ Daar sal julle julleself as slawe en slavinne te koop aanbied aan jou vyande, maar daar sal geen koper wees nie.” Dit is die bepalings van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die Israeliete te sluit in die land Moab, afgesien van die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Julle het self alles gesien wat die Here in Egipteland voor julle oë gedoen het aan die farao, aan al sy dienaars en aan sy hele land – die groot teistering wat jou eie oë gesien het, ja, daardie tekens van mag en groot wonders. Tot vandag toe het die Here nie vir julle insig gegee om te verstaan nie, oë om te sien en ore om te hoor nie. Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn gelei. Julle klere aan julle lywe het nie verslyt nie. Jou sandale aan jou voete het ook nie verslyt nie. Brood het julle nie geëet nie, en wyn of sterk drank het julle nie gedrink nie, sodat julle kon verstaan dat Hy die Here, julle God is. “Toe julle op hierdie plek aangekom het, het Sihon, die koning van Gesbon, en Og, die koning van Basan, opgetrek om teen ons oorlog te maak. Maar ons het hulle verslaan, hulle land afgeneem en dit as erfenis aan die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse gegee. Kom dan die woorde van hierdie verbond na en voer dit uit, sodat julle sukses kan behaal met alles wat julle aanpak. Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God – julle hoofde, julle stamhoofde, julle oudstes en julle opsieners, elke Israeliet, julle kinders, julle vroue, en al die •vreemdelinge wat in jou kamp is, van hulle wat vir jou hout kap tot hulle wat vir jou water uit die put optrek – om toe te tree tot die verbond van die Here jou God wat die Here jou God vandag met jou gaan sluit, en ook die vervloeking daaraan verbonde, sodat Hy jou vandag as sy volk kan vestig, en Hy vir jou 'n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy dit met 'n eed beloof het aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob. Dit is nie julle alleen wat ek aan hierdie verbond en hierdie vervloeking bind nie; nee, dit is elkeen wat vandag hier saam met ons in die teenwoordigheid van die Here ons God staan, sowel as dié wat nie vandag hier saam met ons is nie. “ Julle weet immers self dat ons in Egipteland gewoon het en dat ons tussen ander nasies deurgetrek het en dat, toe julle deurgetrek het, julle hulle walglike beelde, hulle afgode, gesien het – die hout en klip, silwer en goud wat by hulle was. Dit het gebeur sodat daar by julle nie 'n man of 'n vrou of familie of stam sal wees wat vandag hulle harte van die Here ons God afwend om die gode van daardie nasies te gaan dien nie – ja, sodat daar onder julle geen wortel sal wees wat giftige plante en wildeals voortbring nie. Iemand sou homself in sy gedagtes as geseënd kon beskou by die aanhoor van die woorde van hierdie vervloeking en dink, dit sal met my goed gaan, al hou ek vol met my verstoktheid van hart. Sodat dit wat natgemaak is, nie saam met wat droog is, wegkwyn nie, sal die Here nie bereid wees om hom te vergewe nie. Nee, die toorn van die Here en sy ywer sal dan teen daardie man bly smeul, en elke vervloeking wat op hierdie •boekrol geskryf staan, sal op hom rus. Die Here sal sy naam onder die hemel uitwis. Die Here sal so iemand met die oog op die onheil afsonder van al die stamme van Israel, ooreenkomstig al die vervloekings van die verbond wat op hierdie boekrol met die wet geskryf staan. “ Die volgende geslag, die kinders wat ná julle kom en die buitelanders uit 'n ver land, sal die plae van hierdie land en die siektes wat die Here daar laat uitbreek, sien; hulle sal sê, ‘Dit is net swael en sout; die hele gebied is verskroei. Daar word nie geplant nie en niks groei daar nie; geen groenigheid kom eers op nie. Dit is soos met die verwoesting van Sodom en Gomorra, soos met Adma en Sebojim wat die Here in sy toorn en woede verwoes het.’ Ja, al die nasies sal vra, ‘Waarom het die Here so gemaak met hierdie land? Wat is die rede vir hierdie verskriklike siedende toorn?’ Mense sal sê, ‘Dit is omdat hulle die verbond van die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Hulle het ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding gebuig – gode wat hulle nie geken het nie en wat Hy nie aan hulle toegewys het nie. Die toorn van die Here het ontbrand teen daardie land, sodat Hy al die vervloeking wat op hierdie boekrol geskryf staan, oor hulle gebring het. Die Here het hulle in toorn en woede, in fel grimmigheid, van hulle grond af geruk en hulle weggewerp na 'n ander land, soos dit vandag is.’ “Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak; wat geopenbaar is, is altyd vir ons en ons kinders van belang, sodat ons die woorde van hierdie wet kan uitvoer.” “ Wanneer al hierdie dinge, die seën en die vervloeking wat ek aan jou voorhou, oor jou gekom het, en jy dit ter harte neem waar jy onder al die nasies is waarheen die Here jou God jou gaan verdryf, en wanneer jy terugkeer na die Here jou God en met hart en siel na sy stem luister, net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, dan sal die Here jou God jou lot verander. Hy sal Hom oor jou ontferm en jou weer bymekaarmaak uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. Selfs al is jy verstrooi tot aan die einde van die aarde, van daar af sal die Here jou God jou bymekaarmaak, ja, van daar af sal Hy jou gaan haal. Die Here jou God sal jou bring na die land wat jou voorouers in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem. Hy sal jou goed behandel en jou meer maak as jou voorouers. Die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, sodat jy die Here jou God met hart en siel sal liefhê, sodat jy kan leef. Die Here jou God sal al hierdie vervloekings op jou vyande lê en op jou haters wat jou agtervolg. Maar jy sal weer na die stem van die Here luister en al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, uitvoer. Die Here jou God sal aan jou ryke oorvloed skenk: in al jou handewerk, in die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. Ja, die Here sal Hom weer tot jou voordeel oor jou verheug soos Hy Hom oor jou voorouers verheug het, as jy net sal luister na die stem van die Here jou God, deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat op hierdie •boekrol met die wet geskryf staan, na te kom; as jy met hart en siel sal terugkeer na die Here jou God. “ Ja, hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is nie vir jou te moeilik nie en dit is nie ver weg nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons na die hemel opgaan, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons oorgaan tot oorkant die see, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ Nee, die woord is baie naby jou – in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer. “Kyk, vandag hou ek aan jou die lewe en wat goed is, die dood en wat sleg is, voor. Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê, deur sy paaie te volg en sy gebooie, sy vaste voorskrifte en sy beslissings na te kom; dan sal jy leef en vermeerder, en sal die Here jou God jou seën in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. Maar as jou hart afwyk en jy nie luister nie, jou laat verlei en in aanbidding buig voor ander gode en hulle dien, dan maak ek vandag aan julle bekend dat julle beslis tot niet sal gaan. Julle sal nie lank leef op die grond waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. Ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle. Die lewe en die dood, die seën en die vervloeking, hou ek aan jou voor: Kies dan die lewe, sodat jy kan leef, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en aan Hom vas te hou. Want dit is jou lewe: om jou lewe lank te woon op die grond wat die Here met 'n eed beloof het aan jou voorvaders om aan hulle te gee, aan Abraham, Isak en Jakob.” Moses het toe gegaan en hierdie woorde aan die hele Israel oorgedra. Hy het ook vir hulle gesê: “Ek is nou honderd-en-twintig jaar oud. Ek kan nie meer uittrek en terugkeer nie, en die Here self het vir my gesê, ‘Jy mag nie hierdie Jordaan oorsteek nie.’ Die Here jou God gaan voor jou oortrek; dit is Hy wat daardie nasies voor jou sal uitdelg en verdryf. Josua gaan ook voor jou oortrek, soos die Here gesê het. Die Here sal aan hulle doen wat Hy aan Sihon en Og, die konings van die Amoriete, en hulle land gedoen het toe Hy hulle uitgedelg het. Die Here sal hulle aan julle oorgee, en julle moet teen hulle optree ooreenkomstig elke gebod wat ek julle beveel het. Wees dapper en sterk; moenie bang wees nie en moenie vir hulle skrik nie, want die Here jou God, Hy is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.” Toe roep Moses vir Josua nader en sê vir hom ten aanhore van die hele Israel: “Wees dapper en sterk, want dit is jy wat saam met hierdie volk na die land moet gaan wat die Here aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee. Jy sal hulle dit laat erf. Die Here is die Een wat voor jou uitgaan; Hy is by jou, Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie.” Moses het hierdie wet neergeskryf en dit vir die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, gegee, en ook vir al die oudstes van Israel. Moses het hulle beveel: “Aan die einde van sewe jaar, op die vasgestelde tyd van die jaar van kwytskelding, tydens die Huttefees, wanneer die hele Israel kom om voor die Here jou God te verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet jy hierdie wet aan die hele Israel voorlees, sodat hulle dit kan hoor. Roep die volk byeen, manne, vroue en kinders, asook die •vreemdelinge wat in julle dorpe is, sodat hulle dit kan hoor, en sodat hulle dit kan leer en vir die Here julle God ontsag kan hê, en al die woorde van hierdie wet nougeset kan nakom. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet dit hoor, en leer om vir die Here julle God ontsag te hê so lank as julle leef op die grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.” Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, jou tyd om te sterf, is naby. Roep Josua, en gaan neem dan julle plek in die Tent van Ontmoeting, sodat Ek aan hom opdragte kan gee.” Moses en Josua het gegaan, en toe hulle in die Tent van Ontmoeting gaan staan, het die Here in die tent in 'n wolkkolom verskyn. Die wolkkolom het by die ingang van die tent bly staan. Toe sê die Here vir Moses: “Kyk, jy gaan binnekort by jou voorouers rus, maar hierdie volk sal opstaan en agter die vreemde gode in hulle midde aan hoereer – die gode van die land waarheen hulle op pad is. Hulle sal My verlaat en my verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek. My toorn sal op daardie dag teen hulle ontbrand; Ek sal hulle verlaat en my gesig vir hulle verberg. Dan sal hulle 'n prooi wees, en baie rampe en ellende sal hulle tref. Op dié dag sal hulle sê, ‘Is dit nie omdat ons God nie in ons midde is dat hierdie rampe ons tref nie?’ Ek sal egter op daardie dag my gesig heeltemal verberg oor al die kwaad wat hulle gedoen het toe hulle hulle na ander gode gewend het. Teken dan nou hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete; lê dit vir hulle in die mond, sodat hierdie lied vir My 'n getuie kan wees teen die Israeliete. Want Ek sal hulle bring na die grond wat Ek aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning – maar hulle sal eet en versadig raak en vet word, en hulle na ander gode wend en dié dien; hulle sal My minag en my verbond verbreek. En wanneer baie rampe en ellende hulle tref, sal hierdie lied openlik as getuie teen hulle dien, omdat dit nie vergete sal raak en uit die mond van hulle nageslag verdwyn nie. Ja, Ek ken die neiging wat hulle nou al openbaar, voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met 'n eed beloof het.” Moses het op daardie dag hierdie lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer. Die Here het Josua, die seun van Nun, opdrag gegee en vir hom gesê: “Wees dapper en sterk, want dit is jy wat die Israeliete moet inbring in die land wat Ek met 'n eed aan hulle beloof het. Ek sal met jou wees.” Nadat Moses die woorde van hierdie wet tot die einde in 'n •boekrol geskryf het, het hy die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, beveel: “ Neem hierdie wetboek en plaas dit langs die verbondsark van die Here julle God. Dit moet daar wees as 'n getuie teen jou, Israel, want ek ken jou opstandigheid en hardnekkigheid. Kyk, as julle, terwyl ek nou nog by julle in die lewe is, opstandig is teen die Here, hoeveel te meer ná my dood! Roep al die oudstes van julle stamme en julle opsieners bymekaar hier by my; ek wil hierdie woorde duidelik vir hulle sê, en die hemel en die aarde as getuies teen hulle neem. Want ek weet dat julle ná my dood julle ernstig sal wangedra en sal afwyk van die pad wat ek julle beveel het, en dat die onheil julle sal inhaal aan die einde van die dae, omdat julle gaan doen wat verkeerd is in die oë van die Here deur Hom uit te tart met die werk van julle hande.” Moses het, ten aanhore van die hele geloofsgemeenskap van Israel, die woorde van hierdie lied tot die einde voorgedra. “ Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor. Mag my onderrig neerstuif soos reën, my woorde drup soos dou, soos deurdringende reën op groen gras, soos reënbuie op plante. Ja, die Naam van die Here roep ek uit, Erken die grootheid van ons God, die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is 'n maatstaf. 'n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy. “ Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra; hulle is nie sy kinders nie, maar 'n skandvlek, 'n vals en verworde geslag. Is dit hoe julle teenoor die Here optree, dwase en onverstandige volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Hy is die Een wat jou gemaak het, wat jou gevestig het. Onthou die tye lank gelede, dink aan die jare van vorige geslagte; vra jou vader, hy sal jou inlig; jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê: Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het, toe Hy mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van volke vasgelê volgens die getal van die kinders van Israel; want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfenis. Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die Here hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie. Die Here het hom laat ry oor die hoogtes van die aarde. Hy het die opbrengs van die veld geëet. Die Here het hom gevoed met heuning uit 'n rotsskeur, met olie uit 'n klipharde rots, met die dikmelk van beeste, die melk van kleinvee, ook met die vet van slaglammers, ramme uit Basan, ook bokramme, en met die fynste koringmeel. En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn. “ Jesurun het vet geword en agterop geskop. Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak. Hy het die God wat hom gemaak het, versaak, die Rots wat hom verlos, met minagting behandel. “Hulle het die Here met vreemde gode ontstel, met afstootlike dinge het hulle Hom getart. Hulle het vir demone, vir nie-gode, vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag – nuwes wat maar onlangs na vore gekom het, gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie. Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam; jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet. “ Die Here het dit gesien, en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot. Hy het gesê, ‘Ek wil my gesig vir hulle verberg; Ek wil sien wat van hulle gaan word, want hulle is 'n verworde geslag, kinders wat nie vertrou kan word nie. Hulle het My ontstel met nie-gode, My uitgetart met hulle nietige afgode. Ek gaan hulle ontstel met 'n nie-volk, met 'n dwase nasie gaan Ek hulle tart. Want 'n vuur is aangesteek in my toorn, en dit brand tot in die •doderyk daar onder. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan. Ek bring meer rampe oor hulle, my pyle skiet Ek alles op hulle af: Uitgemergel deur honger, uitgeteer deur plae en die verskriklikste pessiekte, lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange. Buite maai die swaard af, en in die binnekamers die vrees – jong man sowel as jong meisie, die suigeling saam met die grysaard. “ ‘Ek het gedink, ek moet hulle uitwis, die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn, was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie. Anders maak hulle teenstanders 'n verkeerde afleiding en sê: “Ons mag het geseëvier; die Here het niks hiervan gedoen nie.” ’ “Ja, die vyand is 'n nasie wie se planne gedaan is, by wie daar geen insig is nie. As hulle wys was, sou hulle dit begryp, hulle sou nadink oor hulle einde. Hoe kan een dan duisend agtervolg, en twee tienduisend op die vlug jaag as hulle rots hulle nie verkoop het nie, as die Here hulle nie oorgelewer het nie? Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie – ons vyande gee dit toe – want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies, van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels. Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse. Hulle wyn is slanggif, die dodelike gif van kobras. Die Here sê, ‘Is dit nie by My weggebêre nie, in my stoorkamers verseël vir die dag van wraak en vergelding, vir die tyd wanneer hulle voete gaan wankel nie? Want naby is die dag van hulle teenspoed; wat vir hulle gereed lê, kom gou.’ “ Maar die Here laat reg geskied aan sy volk, oor sy diensknegte ontferm Hy Hom, wanneer Hy sien dat hulle mag verdwyn het, en dat die einde aangebreek het vir wie gevange is en vir wie vrygelaat is. “Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode, die rots waar hulle geskuil het, wat die vet van hulle slagoffers geëet, en die wyn van hulle •drankoffers gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, laat hulle oor julle 'n beskutting wees. Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie. Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê: “So waar as wat Ek ewig leef, Ek gaan my flitsende swaard skerp maak, en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp. Ek gaan wraak neem op my teenstanders, my haters gaan Ek vergeld. Ek gaan my pyle dronk maak van bloed – my swaard sal vleis verslind – van die bloed van gesneuweldes en gevangenes, van die vyand se leiers met die los hare. ” ’ “Nasies, juig sy volk toe, want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek; Hy gaan wraak neem op sy teenstanders en versoening doen vir sy grond, sy volk.” So het Moses dan gekom en al die woorde van hierdie lied ten aanhore van die volk voorgedra, hy en Josua, die seun van Nun. Toe Moses klaar was met die voordra van al hierdie woorde vir die hele Israel, het hy vir hulle gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, ter harte – dat julle dit aan julle kinders moet opdra om al die woorde van hierdie wet nougeset na te kom. Want dit is nie 'n niksseggende saak vir julle nie, dit is immers julle lewe. Deur hierdie saak verleng julle die lewe op daardie grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.” Die Here het op daardie selfde dag met Moses gepraat en gesê: “Klim teen hierdie Abarimberge op, teen die berg Nebo, wat in die land Moab teenoor Jerigo lê. Kyk dan na die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete as besitting gaan gee. Sterf op die berg waarteen jy opklim en word so met jou mense verenig, net soos Aäron, jou broer, op die berg Hor gesterf en met sy mense verenig is, omdat julle aan My ontrou was tussen die Israeliete by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn; want julle het daar tussen die Israeliete nie my heiligheid in ag geneem nie. Ja, jy sal die land van die oorkant af sien; maar daarheen, na die land wat Ek aan die Israeliete gaan gee, sal jy nie gaan nie.” Hier volg die seën waarmee Moses, die man van God, die Israeliete voor sy dood geseën het. Hy het gesê: “Van Sinai af het die Here gekom, van Seïr af het Hy vir Israel lig laat skyn, laat straal van die berg Paran af. By Hom was tienduisende heiliges; in sy regterhand was 'n wet van vuur vir hulle; ja, Hy het mense lief. Al die heiliges is in u hand, hulle volg U op die voet; elkeen het u uitsprake ontvang – die wet wat Moses ons beveel het, die eiendom van die geloofsgemeenskap van Jakob. Die Here het in Jesurun koning geword toe die leiers van die volk byeengekom het, toe die stamme van Israel bymekaar was. “Mag Ruben leef; mag hy nie sterf nie, en sy manne nie min wees nie.” Dit het hy oor Juda gesê: “Luister, Here, na die stem van Juda; na sy volk moet U hom bring, met sy hande het hy vir homself gestry; wees vir hom 'n hulp teen sy teenstanders.” Oor Levi het hy gesê: “U Tummim en Urim is bedoel vir u gunsgenoot vir wie U getoets het by Massa, met wie U stryd gevoer het by die water van Meriba; hy wat oor sy vader en moeder gesê het, ‘Ek sien hulle nie raak nie’, wat sy broers nie erken het nie, en sy seuns nie in ag geneem het nie. Want hulle het u opdrag nagekom, en hou by u verbond. Hulle sal vir Jakob beslissings leer, ja, u wet vir Israel. Hulle sal vir U reukwerk neersit om te ruik, ook 'n volledige offer op u altaar. Seën, Here, sy vermoë, en aanvaar die werk van sy hande. Verpletter die heupe van wie teen hom opstaan, van sy haters, sodat hulle nie staande kan bly nie.” Oor Benjamin het hy gesê: “Die geliefde van die Here – mag dié veilig by Hom woon. Die Here beskut hom altyd waar hy tussen sy berghange woon.” Oor Josef het hy gesê: “Sy land word deur die Here geseën met die kosbaarste gawes van die hemelruim, met dou en die •oerwater wat onder lê; met die kosbare gawes wat die son oplewer en die kosbare gawes wat die seisoene bied; met die beste van die oeroue berge en die kosbare gawes van die ewige heuwels; met die kosbare gawes van die grond en alles daarop. Die guns van Hom wat in die doringstruik was – mag dit rus op die kop van Josef, op die hoof van die prins onder sy broers. Sy eersgebore bul is statig; en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy volke saam wegstoot tot by die uithoeke van die aarde. Hulle is die tienduisende van Efraim, hulle is die duisende van Manasse.” Oor Sebulon het hy gesê: “Sebulon, wees bly wanneer jy uittrek om te veg, ook jy, Issaskar, in jou tente. Hulle sal volke na die berg nooi; daar sal hulle gepaste offers bring, want hulle gaan die oorvloed van die see en die verborge skatte in die sand geniet.” Oor Gad het hy gesê: “Hy wat vir Gad ruimte maak, moet geprys word. Gad leef soos 'n leeuwyfie: Hy verskeur arm en skedel. Hy het vir homself die beste deel uitgesoek; ja, op daardie plek is die stuk grond van 'n bevelvoerder vir hom uitgehou toe hy na die leiers van die volk gekom het. Hy het die geregtigheid van die Here volbring, sy beslissings in verband met Israel.” Oor Dan het hy gesê: “Dan is 'n leeuwelpie; hy spring op uit Basan.” Oor Naftali het hy gesê: “Naftali is versadig van die Here se guns, en vol van sy seëninge. Neem dan die weste en die suide in besit.” Oor Aser het hy gesê: “Geseënd is Aser, meer as die ander seuns; mag hy die gunsteling van sy broers wees, sy voete in olie doop. Mag jou sluitbalke van yster en brons wees, en jou lewenskrag soos jou lewensjare. “Jesurun, daar is niemand soos God nie, wat as jou hulp deur die hemel ry, deur die wolkehemel in sy verhewenheid. Die God van die voortyd is 'n skuilplek, en onder jou is ewige arms. Hy het vyande voor jou verdryf en gesê, ‘Delg uit!’ “Israel het veilig gaan woon; die fontein van Jakob was afgesonder in 'n land met koring en •nuwe wyn, en sy hemel drup dou. Gelukkig is jy, Israel! Wie is soos jy, 'n volk wat verlos is deur die Here, die skild wat jou help, en wat jou verhewe swaard is? Jou vyande kom kruipend na jou, en jy trap op hulle rûe. ” Moses het uit die vlaktes van Moab teen die berg Nebo uitgeklim, na die kruin van Pisga wat teenoor Jerigo lê. Die Here het hom die hele land, van Gilead tot by Dan, gewys, ook die hele Naftali, die streek van Efraim en Manasse, die hele streek van Juda tot by die see in die weste, sowel as die Negev en die omstreke van die vallei van Jerigo, die Palmstad, tot by Soar. Die Here het vir hom gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het, ‘Aan jou nageslag sal Ek dit gee.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar daarheen sal jy nie oorgaan nie.” Toe het Moses, die dienskneg van die Here, daar in die land Moab op bevel van die Here gesterf. Hy het Moses in die land Moab in die vallei teenoor Bet-Peor begrawe, en tot vandag toe weet geen mens waar sy graf is nie. Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het. Sy oë het nie verswak en sy kragte nie afgeneem nie. Die Israeliete het in die vlaktes van Moab dertig dae lank oor Moses getreur – tot die routyd oor Moses verby was. Josua, die seun van Nun, was vervul met 'n gees van wysheid, omdat Moses sy hande op hom gelê het. Die Israeliete het na hom geluister, soos die Here Moses beveel het. Daar het nie weer 'n profeet soos Moses in Israel opgestaan nie. Die Here het hom van aangesig tot aangesig geken, sodat hy al die tekens van mag en wonders waarvoor die Here hom gestuur het, kon doen in Egipteland aan die farao, aan al sy dienaars en die hele land – ja, die hele magsvertoon en al die groot, skrikwekkende dade wat Moses voor die oë van die hele Israel gedoen het. Ná die dood van Moses, die dienskneg van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun, Moses se helper, gesê: “Moses, my dienskneg, is dood. Daarom, maak nou gereed om hierdie Jordaan oor te steek, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, aan die Israeliete, gaan gee. Elke plek waarop julle voete trap – aan julle gee Ek dit soos Ek aan Moses beloof het. Van die woestyn en die Libanon af tot by die groot rivier, die Eufraat, die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste, sal julle gebied wees. Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.” Josua het toe die opsieners van die volk opdrag gegee: “Gaan deur die kamp en gee opdrag aan die volk, ‘Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae gaan julle hierdie Jordaan oorsteek om die land binne te gaan, om in besit te neem wat die Here julle God aan julle gaan gee om in besit te neem.’ ” Vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het Josua gesê: “Onthou die saak waaroor Moses, die dienskneg van die Here, julle opdrag gegee het, ‘Die Here julle God gaan vir julle rus gee en hierdie land aan julle gee. Julle vroue, die swakkes onder julle en julle vee kan bly in die gebied oorkant die Jordaan wat Moses aan julle gegee het. Maar julle moet in slagorde voor julle broers oortrek, al die dapper krygers, en hulle bystaan totdat die Here vir julle broers rus gegee het soos vir julle, en hulle ook die land wat die Here julle God vir hulle gee, in besit geneem het. Dan mag julle terugkeer na die land wat julle eiendom is en dit in besit neem – die land wat Moses, die dienskneg van die Here, vir julle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant.’ ” Hulle het Josua geantwoord: “Alles wat u ons beveel, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. Net soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God ook by u wees, net soos Hy by Moses was. Elkeen wat teen u bevel in opstand kom en nie u woorde gehoorsaam nie, wat u hom ook al beveel, moet sterf. Wees net dapper en sterk.” Toe het Josua, seun van Nun, in die geheim twee manne as verkenners uit Sittim gestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en Jerigo.” Hulle het gegaan en by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab aangekom en daar oornag. Aan die koning van Jerigo is gesê: “Kyk, manne van die Israeliete het in die nag hierheen gekom om die land te verken.” Toe stuur die koning van Jerigo 'n boodskap na Ragab: “Lewer die manne uit wat by jou aangekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken.” Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle versteek. Sy het gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” Maar sy het hulle na die dak laat opklim en hulle versteek onder vlasstingels wat vir haar op die dak oopgesprei was. Die manne het hulle agternagesit op die pad na die Jordaan, tot by die driwwe. Die stadspoort is gesluit nadat dié wat hulle agternagesit het, uitgegaan het. Voordat die verkenners gaan lê het om te slaap, het sy op die dak geklim na hulle toe. Sy het vir die manne gesê: “Ek weet dat die Here aan julle die land gegee het, en dat vrees vir julle ons oorval het, ja, dat al die inwoners van die land sidder oor julle. Want ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het met julle uittog uit Egipte, en wat julle gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, aan Sihon en Og wat deur julle met die banvloek getref is. Ons het dit gehoor, en ons harte het ineengekrimp, sodat niemand meer moed het teen julle nie. Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder. Daarom, sweer nou asseblief vir my by die Here dat ook julle guns sal betoon aan my familie, omdat ek guns aan julle betoon het. Gee my 'n betroubare teken dat julle my vader en moeder, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, sal laat leef, dat julle ons sal red van die dood.” Toe sê die manne vir haar: “Ons self staan in vir julle, tot die dood toe, as julle niks oor hierdie saak van ons bekend maak nie. Wanneer die Here hierdie land vir ons gee, sal ons aan jou guns en trou bewys.” Sy het hulle toe met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was binne die dwarsmure van die stadsmuur; sy het in die stadsmuur gewoon. Sy het vir hulle gesê: “Gaan na die bergland, anders kom die agtervolgers op julle af. Kruip daar weg vir drie dae, totdat die agtervolgers terugkom. Daarna kan julle verder gaan op julle pad.” Die manne het vir haar gesê: “Ons sou vry kon wees van hierdie eed aan jou wat jy ons laat sweer het. Kyk, wanneer ons in die land kom, moet jy hierdie karmosynrooi gevlegte tou vasmaak aan die venster waardeur jy ons laat sak het. Jou vader en moeder, jou broers en jou hele familie moet jy by jou in jou huis byeenbring. Die bloed van enigiemand wat by die deure van jou huis na buite uitgaan, sal op sy eie kop wees, en ons sal vry wees. Maar die bloed van enigiemand wat by jou in die huis is, sal op ons koppe wees as daar 'n hand teen hulle gelig word. En as jy hierdie saak van ons bekend maak, sal ons ook vry wees van die eed aan jou wat jy ons laat sweer het.” Daarop het sy geantwoord: “Soos julle gesê het, so sal dit wees.” Daarna het sy hulle weggestuur en hulle het vertrek. Sy het toe die karmosynrooi tou aan die venster vasgemaak. Hulle het gegaan en in die bergland aangekom. Daar het hulle drie dae gebly, totdat die agtervolgers teruggekeer het. Die agtervolgers het langs die hele pad gesoek, maar hulle nie gekry nie. Die twee manne het teruggekeer. Hulle het van die berg afgekom, die rivier oorgesteek en by Josua, seun van Nun, aangekom. Hulle het vir hom alles vertel wat met hulle gebeur het. Hulle het vir Josua gesê: “Die Here het inderdaad die hele land in ons hand gegee. Meer nog, al die inwoners van die land sidder oor ons.” Josua het vroeg die môre opgestaan. Hulle het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oornag voordat hulle oorgetrek het. Ná verloop van drie dae het die opsieners deur die kamp gegaan en aan die volk opdragte gegee: “Wanneer julle die verbondsark van die Here julle God sien, en die priesters, die Leviete wat dit dra, moet julle van julle staanplekke af verder trek. Volg die ark, maar daar moet 'n afstand van ongeveer tweeduisend el tussen julle en die ark wees. Moenie naby aan die ark kom nie, sodat julle die pad waarop julle moet gaan, kan leer ken, want julle het nie voorheen met dié pad langs getrek nie.” Josua het vir die volk gesê: “Heilig julleself, want môre gaan die Here in julle midde wonders doen.” Josua het vir die priesters gesê: “Tel die verbondsark op en trek voor die volk oor.” Hulle het toe die verbondsark opgetel en voor die volk geloop. Die Here het vir Josua gesê: “Vandag begin Ek om aan jou aansien te gee in die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat, soos Ek by Moses was, Ek by jou is. Gee jy dan aan die priesters wat die verbondsark dra, opdrag en sê, ‘Sodra julle by die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan gaan staan.’ ” Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader en luister na die woorde van die Here julle God.” Josua het ook gesê: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God in julle midde is en dat Hy beslis die Kanaäniete, die Hetiete, die Hewiete, die Feresiete, die Girgasiete, die Amoriete en die Jebusiete voor julle sal verdryf: Kyk, die verbondsark, die Heer van die hele aarde, gaan voor julle uit, die Jordaan in. Neem dan nou vir julle twaalf manne uit die stamme van Israel, een man vir elke stam. Wanneer die voete van die priesters wat die ark van die Here, die Heer van die hele aarde, dra, in die water van die Jordaan tot rus kom, sal die water van die Jordaan, die water wat van bo af kom, afgesny word en in een massa opdam. ” Toe die volk wegtrek van hulle kampplek om die Jordaan oor te steek, was die priesters wat die verbondsark dra, voor die volk. Die Jordaan loop die hele oestyd kant en wal, maar net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die voete van die priesters wat die ark dra, in die water ingaan, het die water wat van die bokant af kom, gaan staan. Dit het 'n wal gevorm en opgedam – baie ver terug, vanaf Adam, die dorp langs Saretan. Die water wat na die See van die Araba, die Soutsee, vloei, is volledig afgesny. Die volk het toe deurgetrek, reg teenoor Jerigo. Terwyl die hele Israel op droë grond deurtrek, het die priesters wat die verbondsark van die Here dra, in die middel van die Jordaan stewig op droë grond gestaan totdat die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het. Toe die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het, het die Here vir Josua gesê: “ Neem vir julle twaalf manne uit die volk, een man uit elke stam, en gee aan hulle opdrag, ‘Tel vir julle twaalf klippe op daar in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters stewig staan. Neem dit saam met julle deur die rivier en sit dit neer op die plek waar julle vannag gaan oornag. ’ ” Josua het die twaalf manne wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, ontbied. Josua het vir hulle gesê: “Gaan voor die ark van die Here julle God uit tot in die middel van die Jordaan, en tel elkeen dan self 'n klip op sy skouer, net soveel as die stamme van die Israeliete, sodat dit kan dien as 'n teken onder julle. Wanneer julle kinders in die toekoms vra, ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ moet julle vir hulle sê dat die water van die Jordaan afgesny was voor die verbondsark van die Here. Sê vir hulle, ‘Toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die water van die Jordaan afgesny; en hierdie klippe dien vir altyd as 'n herinnering aan die Israeliete.’ ” Die Israeliete het gemaak soos Josua beveel het: Hulle het twaalf klippe, net soveel as die stamme van die Israeliete, uit die middel van die Jordaan opgetel, soos die Here vir Josua gesê het. Hulle het dit met hulle saamgeneem na hulle oornagplek en dit daar neergesit. Nog twaalf klippe is deur Josua in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die voete van die priesters wat die verbondsark gedra het, gestaan het. Dit is daar tot vandag toe. Die priesters wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Jordaan, totdat alles afgehandel was wat die Here Josua beveel het om vir die volk te sê, net soos Moses vir Josua beveel het. Die volk het haastig deurgetrek; en toe die hele volk die deurtog voltooi het, het die ark van die Here en die priesters voor die volk deurgegaan. Die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het voor die Israeliete in slagorde deurgetrek, soos Moses vir hulle gesê het. Ongeveer veertigduisend het, gewapen vir die oorlog, voor die Here vir die geveg na die vlaktes van Jerigo deurgetrek. Op daardie dag het die Here Josua se aansien verhoog in die oë van die hele Israel en hulle het, solank hy geleef het, vir hom ontsag gehad soos hulle vir Moses ontsag gehad het. Die Here het vir Josua gesê: “Beveel die priesters wat die ark met die Getuienis dra, om uit die Jordaan op te klim.” Josua het toe die priesters beveel: “Klim op uit die Jordaan!” Toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die middel van die Jordaan opklim en hulle voetsole droë grond raak, het die water van die Jordaan teruggevloei na sy plek. Dit het soos voorheen kant en wal geloop. Die volk self het uit die Jordaan opgetrek op die tiende van die eerste maand. Hulle het kamp opgeslaan by Gilgal aan die oosgrens van Jerigo. Daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua in Gilgal opgerig. Hy het vir die Israeliete gesê: “As julle kinders in die toekoms vir hulle ouers vra, ‘Wat beteken hierdie klippe?’ dan moet julle aan julle kinders verduidelik, ‘Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek.’ Want die Here julle God het die water van die Jordaan voor julle laat opdroog, totdat julle deurgetrek het, soos wat die Here julle God gedoen het met die Rietsee wat Hy voor ons laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het, sodat al die volke van die aarde mag weet dat die hand van die Here sterk is, en sodat julle altyd vir die Here julle God ontsag sal hê.” Toe al die konings van die Amoriete aan die westekant van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete langs die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, het hulle harte ineengekrimp, sodat hulle nie meer moed gehad het vir die Israeliete nie. In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny weer die Israeliete 'n tweede keer. ” Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en die Israeliete besny by Ghibeat Ha-araloot. En dit is die rede waarom Josua die besnydenis moes doen: Die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die krygsmanne, is op pad in die woestyn dood, gedurende die uittog uit Egipte. Die hele volk wat weggetrek het, was immers besny; maar al die volksgenote wat in die woestyn gebore is terwyl hulle op pad was, gedurende hulle uittog uit Egipte, is nie besny nie. Want veertig jaar lank het die Israeliete in die woestyn rondbeweeg, totdat die hele nasie krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, tot niet was, hulle wat nie na die stem van die Here geluister het nie, vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle nie die land sal laat sien wat die Here aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee nie – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hulle kinders het Hy in hulle plek gestel. Dit is hulle wat Josua besny het, want hulle was onbesnede, omdat hulle nie op pad besny is nie. Toe die hele volk klaar besny is, het hulle net waar hulle was in die kamp gebly, totdat hulle gesond was. Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so. Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet. Toe Josua naby Jerigo was, het hy opgekyk. Reg voor hom staan daar skielik 'n man met 'n ontblote swaard in sy hand. Josua gaan toe na hom en vra hom: “Is jy vir ons, of vir ons vyande?” Hy het geantwoord: “Nee, maar ek is die bevelvoerder van die leër van die Here; daarom het ek gekom.” Josua het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig, en vir hom gesê: “Wat wil my heer vir sy dienaar sê?” Die bevelvoerder van die leër van die Here het Josua geantwoord: “Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig.” Josua het toe so gemaak. Jerigo se poorte was egter dig gesluit vanweë die Israeliete; niemand het daar uitgegaan of ingegaan nie. Die Here sê toe vir Josua: “Kyk, Ek gee Jerigo, sy koning en sy dapper krygers in jou hand. Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne. Jy moet een keer om die stad gaan. Ses dae lank moet jy só maak: Sewe priesters moet sewe •ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. En wanneer daar lank op die horing van die ram geblaas word, moet al die manskappe, sodra julle die geluid van die ramshorings hoor, 'n baie harde oorlogskreet aanhef. Die stadsmuur sal dan ineenstort, en die manskappe moet bo-oor klim, elke man reg voor hom uit.” Josua, seun van Nun, het toe die priesters ontbied en vir hulle gesê: “Dra die verbondsark. Sewe priesters moet die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra.” Hy sê toe vir die manskappe: “Trek op en gaan om die stad; die gewapende manne moet voor die ark van die Here optrek.” Net toe Josua dit vir die manskappe gesê het, het die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die Here dra, opgetrek en op die ramshorings geblaas, terwyl die verbondsark van die Here hulle volg. Die gewapende manne het voor die priesters wat op die ramshorings blaas, geloop, terwyl die agterhoede die ark volg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. Aan die manskappe het Josua die opdrag gegee: “Julle mag nie 'n oorlogskreet aanhef en julle stemme laat hoor nie. Daar mag nie 'n woord uit julle monde kom nie, tot die dag dat ek vir julle sê, ‘Skreeu!’ dan moet julle die oorlogskreet aanhef.” Josua het die ark van die Here om die stad laat trek. Dit het een keer om die stad gegaan. Daarna het hulle na die kamp teruggegaan en in die kamp oornag. Josua het vroeg die môre opgestaan. Die priesters het die ark van die Here gedra, en die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra, het aanhoudend op die ramshorings geloop en blaas. Die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die Here gee die stad aan julle! Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die Here. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die Here; na die skatkamer van die Here moet dit gaan.” Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle 'n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem en alles wat in die stad was, deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref – van man tot vrou, kind tot oumens, ja, selfs die beeste, skape en donkies. Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly. Die stad en alles wat daarin was, het hulle afgebrand. Net die silwer, die goud en voorwerpe van brons en yster het hulle oorhandig vir die skatkamer van die huis van die Here. Maar vir Ragab, die prostituut, en haar familie – almal wat by haar hoort – het Josua laat leef. Sy het in Israel bly woon tot vandag toe, omdat sy die boodskappers wat Josua gestuur het om Jerigo te verken, versteek het. Josua het in daardie tyd 'n eed afgelê: “Vervloek voor die Here is die man wat opstaan en hierdie stad, Jerigo, herbou: Ten koste van sy eersgeborene sal hy die fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy die poortdeure oprig.” Die Here was met Josua, en sy roem het deur die hele land versprei. Die Israeliete het egter 'n daad van ontrou begaan met die bangoed. Agan, seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed gevat; en die toorn van die Here het teen die Israeliete ontbrand. Josua het manne uit Jerigo na Ai gestuur, wat by Bet-Awen, oos van Bet-El, lê. Hy het vir hulle gesê: “Trek op, verken die land.” Die manne het opgetrek en Ai verken. Hulle het na Josua teruggekom en gesê: “Nie al die manskappe moet optrek nie. Ongeveer twee- of drieduisend man kan optrek; hulle sal Ai verslaan. Moenie al die manskappe die moeite aandoen om hulle daarheen te stuur nie, want daar is maar min mense.” Ongeveer drieduisend van die manskappe het daarheen opgetrek, maar hulle het gevlug voor die manne van Ai. Die manne van Ai het ongeveer ses-en-dertig van hulle neergevel. Hulle het hulle van voor die stadspoort af tot by Sebarím agtervolg en hulle teen die hang neergevel. Die harte van die manskappe het ineengekrimp en soos water geword. Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig teen die grond neergebuig voor die ark van die Here – hy en die oudstes van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi. Josua het gesê: “Ag, Here, my Heer, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons in die hande van die Amoriete oor te gee, om ons te vernietig? Was ons maar liewer bereid om oorkant die Jordaan te bly! Asseblief, my Heer! Wat moet ek sê nadat Israel voor sy vyande gevlug het? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal dit hoor, ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei. Wat sal U dan doen vir u groot Naam? ” Die Here het Josua geantwoord: “Staan op! Waarom lê jy nou op jou gesig? Israel het gesondig. Hulle het my verbond wat Ek hulle beveel het, oortree, asook van die bangoed geneem, dit gesteel en daaroor gelieg, en dit boonop by hulle goed gevoeg. Die Israeliete sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle moet voor hulle vyande vlug, omdat hulle self bangoed geword het. Ek sal nie meer met julle wees nie, tensy julle die bangoed tussen julle uitdelg. Staan op, heilig die volk en sê, ‘Heilig julleself teen môre, want so het die Here, die God van Israel, gesê: “Bangoed is in jou midde, Israel. Jy sal nie standhou voor jou vyande nie, totdat julle die bangoed uit julle midde verwyder het.” Kom môreoggend nader volgens julle stamme. Die stam wat die Here uitwys, moet volgens familiegroepe nader kom, en die familiegroep wat die Here uitwys, moet volgens families nader kom, en die familie wat die Here uitwys, moet man vir man nader kom. Die een wat met die bangoed uitgewys word, moet verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en heiligskennis gepleeg het in Israel.’ ” Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat nader kom. Die stam van Juda is toe uitgewys. Hy het die familiegroepe van Juda laat nader kom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat nader kom, en Sabdi is uitgewys. Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat nader kom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys. Josua sê toe vir Agan: “My seun, gee tog eer aan die Here, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” Agan het Josua geantwoord en gesê: “Waarlik, dit is ek wat gesondig het teen die Here, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.” Josua het toe boodskappers gestuur. Hulle het na die tent gehardloop, en sowaar, dit was weggesteek in die tent met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent gehaal en na Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit voor die Here uitgeskud. Josua en die hele Israel saam met hom, neem toe vir Agan, afstammeling van Serag, met die silwer, die koningsmantel en die staaf goud, asook sy seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle het hulle laat opgaan in die vallei van Agor. Josua het gesê: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Vandag stort die Here jou in die ongeluk!” Toe gooi die hele Israel hom met klippe dood. Die res het hulle verbrand of gestenig. Hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is, en die Here se brandende toorn het bedaar. Daarom het hulle daardie plek Vallei van Agor genoem; dit is vandag nog so. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie. Neem al die weerbare manskappe saam met jou; maak gereed en trek op na Ai. Kyk, Ek gee die koning van Ai en sy mense, sy stad en sy gebied, in jou hand. Jy moet met Ai en sy koning maak soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Net die buit en die vee mag julle vir julleself hou. Stel 'n hinderlaag op vir die stad aan die agterkant.” Josua en al die weerbare manskappe het toe gereedgemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig afdelings manne, dapper krygers, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur. Hy het hulle beveel: “Kyk, julle moet vir die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad. Julle moet dit nie te ver van die stad af doen nie, en julle moet almal slaggereed wees. Ek en al die manskappe wat by my is, sal die stad nader, en wanneer hulle uitkom om soos die vorige keer teen ons te staan te kom, sal ons voor hulle uit vlug. Hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal dink, hulle vlug voor ons uit, soos die vorige keer. Terwyl ons dan voor hulle uit vlug, moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad beset. Die Here julle God gee dit in julle hand. Wanneer die stad onder julle beheer is, moet julle dit aan die brand steek. Ooreenkomstig die woord van die Here moet julle optree. Kyk, dit is my opdragte aan julle.” Josua het hulle weggestuur en hulle het na die plek vir die hinderlaag gegaan. Hulle het stelling ingeneem tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van Ai. Josua het daardie nag tussen die manskappe deurgebring. Josua het vroeg die môre opgestaan en die manskappe gemonster. Hy het opgetrek na Ai, hy en die oudstes van Israel aan die voorpunt van die manskappe. Al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek; hulle het nader gegaan, en toe hulle by die stad aankom, het hulle aan die noordekant van Ai kamp opgeslaan, met die vallei tussen hulle en Ai. Hy het ongeveer vyfduisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van die stad. Hulle het dus die manskappe só opgestel: die hoofmag aan die noordekant van die stad, en die agterhoede aan die westekant van die stad. Josua het daardie nag na die middel van die vallei beweeg. Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en die manne van die stad vroeg die oggend Israel haastig tegemoet getrek vir die geveg by 'n sekere plek voor die Araba. Dit was hy en al sy manskappe. Hy het egter nie geweet dat daar vir hom 'n hinderlaag agter die stad wag nie. Josua en die hele Israel het voor hulle teruggeval en gevlug in die rigting van die woestyn. Al die manskappe wat in die stad was, is byeengeroep om hulle te agtervolg; en toe hulle Josua agtervolg, is hulle uit die stad gelok. Daar het niemand in Ai en Bet-El oorgebly wat nie uitgetrek het agter Israel aan nie. Hulle het die stad oop agtergelaat en Israel agtervolg. Toe sê die Here vir Josua: “Steek die kromswaard wat in jou hand is, uit na Ai, want Ek gee dit in jou hand.” Josua het toe die kromswaard wat in sy hand was, na die stad uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, het die manne in die hinderlaag dadelik opgespring uit hulle plekke, gehardloop en in die stad ingegaan. Hulle het dit ingeneem en die stad vinnig aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omdraai, sien hulle – daar styg die rook van die stad op na die hemel! Hulle kon nie na een van die twee kante vlug nie, nie na hierdie of daardie kant nie, want die manskappe wat na die woestyn op vlug was, het omgedraai na die agtervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die manskappe uit die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Toe trek die ander uit die stad die manne van Ai tegemoet, en so was hulle in die middel van die Israeliete, die een groep aan hierdie kant en die ander aan daardie kant. Israel het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug of ontkom het nie. Die koning van Ai is egter lewend gevang en na Josua gebring. Nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn, waar hulle hulle agtervolg het, klaar om die lewe gebring het, en almal van hulle, tot die laaste man toe, deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekeer na Ai en die stad met die skerpte van die swaard verslaan. Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vroue, al die mense van Ai, was twaalfduisend. Josua het nie sy hand met die kromswaard wat hy uitgesteek het, teruggetrek nie, totdat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het. Net die vee en die buit van daardie stad het Israel vir hulleself gevat, volgens die woord van die Here wat Hy Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd 'n puinheuwel gemaak, 'n woesteny; dit is vandag nog so. Die koning van Ai het hy aan 'n paal opgehang tot die aand. Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal, dit by die ingang van die stad gegooi en 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is. Daarna het Josua vir die Here, die God van Israel, 'n altaar gebou by die berg Ebal, soos wat Moses, die dienskneg van die Here, die Israeliete opdrag gegee het, soos dit geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses, “'n altaar van onbewerkte klippe, waaroor geen yster beweeg is nie”. Hulle het toe •brandoffers daarop vir die Here gebring, en ook •maaltydoffers geslag. Josua het daar 'n afskrif van die Wet van Moses op klippe gemaak, wat hy voor die oë van die Israeliete opgeskryf het. Die hele Israel, landsburgers asook •vreemdelinge en hulle oudstes, die opsieners en hulle regters, het aan weerskante van die ark gestaan, reg teenoor die priesters, die Leviete, wat die verbondsark van die Here dra. Die een helfte van Israel was aan die kant van die berg Gerisim, en die ander helfte aan die kant van die berg Ebal, soos Moses, die dienskneg van die Here, vroeër beveel het dat die volk Israel geseën moet word. Daarna het Josua al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vervloeking, net soos dit geskryf staan in die boekrol met die wet. Daar is nie 'n enkele woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele geloofsgemeenskap van Israel en voor die vroue, die kinders en vreemdelinge wat met hulle saamgegaan het nie. Toe al die konings wat anderkant die Jordaan was, dit hoor – in die bergland, die Sjefela, en langs die hele kus van die Groot See tot teen die Libanon; dit is die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete – het hulle byeengekom en eenparig besluit om teen Josua en Israel te veg. Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua aan Jerigo en Ai gedoen het, het hulle op hulle beurt slinks opgetree: Hulle het gegaan en vir hulle padkos voorberei, en hulle het verslete saalkleedjies vir hulle donkies en wyn in verslete leersakke, wat gebars en toegewerk was, saamgeneem. Daar was verslete en gelapte sandale aan hulle voete, en die klere aan hulle was ook verslete. Al die brood van hulle padkos was droog; dit het krummels geword. Hulle het na Josua in die kamp by Gilgal gegaan, en vir hom en die manne van Israel gesê: “Ons kom van 'n baie ver land; sluit daarom nou met ons 'n verdrag.” Maar die manne van Israel het die Hewiete geantwoord: “Miskien woon julle hier tussen ons – hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?” Hulle sê toe vir Josua: “Ons is u dienaars.” Josua het vir hulle gevra: “Wie is julle en waar kom julle vandaan?” Hulle het hom geantwoord: “Van 'n baie ver land het u dienaars gekom, oor die roem van die Here u God; want ons het die berigte oor Hom gehoor: alles wat Hy in Egipte gedoen het, en alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete wat oorkant die Jordaan was, aan Sihon, die koning van Gesbon, en aan Og, die koning van Basan, wat in Astarot was. Ons oudstes en al die inwoners van ons land het vir ons gesê, ‘Neem padkos met julle saam vir die reis en gaan hulle tegemoet. Sê vir hulle: “Ons is u dienaars; daarom, sluit nou met ons 'n verdrag.” ’ Hierdie brood van ons – warm het ons dit uit ons huise geneem as padkos die dag toe ons uitgegaan het om na julle te kom. En nou, kyk, dit is droog en het krummels geword. En hier is die leersakke met wyn wat ons volgemaak het toe dit nog nuut was. En kyk, dit het gebars! Hier is ons klere en ons sandale; dit is verslete van die baie lang reis.” Toe aanvaar die manne hulle woord op grond van hulle padkos. Maar die Here se beslissing het hulle nie gevra nie. Josua het toe vir hulle vrede aangebied, en met hulle 'n verdrag gesluit om hulle te laat leef. Die leiers van die volksvergadering het dit vir hulle met 'n eed bevestig. Maar ná drie dae, nadat Israel met hulle 'n verdrag gesluit het, het hulle gehoor dat hulle bure is en tussen hulle woon. Die Israeliete het verder getrek en op die derde dag by hulle stede aangekom. Hulle stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. Maar die Israeliete het hulle nie aangeval nie, omdat die leiers van die volksvergadering vir hulle voor die Here, die God van Israel, 'n eed afgelê het. Die hele volksvergadering het teenoor die leiers gemor. Toe sê al die leiers vir die hele volksvergadering: “Ons het self vir hulle 'n eed afgelê voor die Here, die God van Israel. Daarom kan ons nie aan hulle raak nie. Dit is wat ons aan hulle sal doen: Ons sal hulle laat leef, sodat 'n oordeel uit toorn ons nie tref oor die eed wat ons vir hulle gesweer het nie.” Die leiers het dus vir die volksvergadering gesê: “Hulle sal leef.” Maar hulle het houtkappers en waterdraers geword vir die hele volksvergadering soos die leiers vir hulle gesê het. Josua het hulle ontbied en met hulle gepraat. Hy het gesê: “Waarom het julle ons mislei deur te sê, ‘Ons woon baie ver van julle af,’ terwyl julle tussen ons woon? Daarom, vervloek is julle! Julle sal julle knegskap nie kan afskud nie; houtkappers en waterdraers sal julle wees vir die huis van my God.” Hulle het Josua geantwoord en gesê: “Omdat daar duidelik berig gebring is aan u dienaars dat die Here u God sy dienskneg Moses beveel het om die hele land aan julle te gee en om al die inwoners van die land voor julle uit te delg, het ons, as gevolg van julle, ernstig gevrees vir ons lewens, en so opgetree. Daarom, kyk, ons is in u hand. Soos dit goed en reg is in u oë, moet u met ons maak.” Dit is wat hy toe met hulle gedoen het: Hy het hulle gered uit die hand van die Israeliete, en hulle het hulle nie doodgemaak nie. Op daardie dag het Josua hulle houtkappers en waterdraers gemaak vir die volksvergadering en vir die altaar van die Here, op die plek wat Hy sou kies; dit is vandag nog so. Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het, dat hy met Ai en sy koning gedoen het wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gesluit het en tussen hulle was, het hy vreesbevange geword. Gibeon was immers 'n groot stad, soos een van die koningstede – ja, dit was groter as Ai, en al sy manne was helde. Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe 'n boodskap na Hoham, die koning van Hebron, na Piram, die koning van Jarmut, na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon met die woorde: “Trek op na my toe, en help my dat ons Gibeon aanval; want hulle het met Josua en die Israeliete vrede gesluit.” Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom en opgetrek – die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon – hulle met al hulle leërs. Hulle het Gibeon beleër en teen die stad oorlog gevoer. Die manne van Gibeon het hierdie boodskap na Josua gestuur, na die kamp by Gilgal: “Moet u dienaars nie in die steek laat nie! Trek gou na ons op! Red ons en help ons! Want al die konings van die Amoriete wat in die bergland woon, het teen ons saamgetrek.” Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. Die Here het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda. Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die Here groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dit was in dié tyd dat Josua met die Here gepraat het, die dag toe die Here die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die Here geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die Here het vir Israel geveg. Josua en die hele Israel saam met hom het na die kamp in Gilgal teruggekeer. Hierdie vyf konings het egter gevlug en in die grot by Makkeda weggekruip. Aan Josua is berig gebring: “Die vyf konings is gevind waar hulle wegkruip in die grot by Makkeda.” Josua het gesê: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en stel manne daar aan om hulle op te pas. En wat julle betref, julle moet nie bly staan nie; agtervolg julle vyande en val hulle van agter aan. Moet hulle nie toelaat om hulle stede te bereik nie, want die Here julle God gee hulle in julle hand.” Nadat Josua en die Israeliete hulle klaar 'n baie groot nederlaag toegedien het, totdat hulle uitgewis was – die vrygeraaktes onder hulle het ontvlug en in die versterkte stede aangekom – het al die manskappe veilig teruggekeer na die kamp, na Josua in Makkeda. Niemand het 'n woord teen die Israeliete gesê nie. Josua het gesê: “Maak oop die ingang van die grot en bring hierdie vyf konings uit die grot na my toe.” Hulle het dit toe gedoen. Hulle het hierdie vyf konings uit die grot na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon. Nadat hulle hierdie konings na Josua uitgebring het, het Josua al die manne van Israel geroep. Hy het vir die •aanvoerders van die krygsmanne wat saam met hom gegaan het, gesê: “Kom nader! Sit julle voete op die nekke van hierdie konings!” Hulle het toe nader gegaan en hulle voete op die nekke van die konings gesit. Josua sê toe vir hulle: “Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Wees dapper en sterk, want so sal die Here met al julle vyande maak teen wie julle gaan veg. ” Daarna het Josua die konings neergevel en hulle doodgemaak. Hy het hulle aan vyf pale opgehang, en hulle het aan die pale bly hang tot die aand. Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle is van die pale afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Groot klippe is voor die ingang van die grot gepak, wat tot vandag toe nog daar is. Josua het ook Makkeda op daardie dag ingeneem, en die stad en sy koning met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het hulle en elke persoon daarin met die banvloek getref. Hy het niemand laat vrykom nie. Met die koning van Makkeda het hy gemaak soos hy met die koning van Jerigo gemaak het. Josua en die hele Israel saam met hom het toe van Makkeda af na Libna getrek en teen Libna oorlog gevoer. Die Here het ook Libna en sy koning in Israel se hand gegee. Hy het die stad en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het niemand daarin laat vrykom nie, en hy het met sy koning gemaak soos hy met die koning van Jerigo gemaak het. Josua en die hele Israel saam met hom het toe van Libna af na Lagis getrek. Hy het dit beleër en teen die stad oorlog gevoer. Die Here het Lagis in die hand van Israel gegee. Josua het die stad op die tweede dag ingeneem en dit en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan, net soos hy met Libna gemaak het. Dit was in dié tyd dat Horam, die koning van Geser, opgetrek het om Lagis te help, maar Josua het hom en sy manskappe so verslaan dat hy niemand vir Horam laat vrykom het nie. Josua en die hele Israel saam met hom het van Lagis af getrek na Eglon. Hy het dit beleër en teen die stad oorlog gevoer. Hulle het die stad op dieselfde dag ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan. Elke persoon daarin het hy nog dieselfde dag met die banvloek getref, net soos hy met Lagis gemaak het. Daarna het Josua en die hele Israel saam met hom van Eglon af na Hebron opgetrek en teen die stad oorlog gevoer. Hulle het dit ingeneem en die stad met sy koning, al sy dorpies en elke persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan. Hy het niemand laat vrykom nie, net soos hy met Eglon gemaak het. Hy het die stad met elke persoon daarin met die banvloek getref. Josua en die hele Israel saam met hom, het omgedraai na Debir en teen die stad oorlog gevoer. Hy het dit met al sy dorpies ingeneem. Die koning het hy gevange geneem. Hy het hulle met die skerpte van die swaard verslaan, elke persoon daarin met die banvloek getref en niemand laat vrykom nie. Soos hy met Hebron gemaak het, so het hy ook met Debir en sy koning gemaak, net soos hy met Libna en sy koning gemaak het. Josua het die hele land verslaan, die bergland, die Negev, die Sjefela en die berghange met al hulle konings. Hy het niemand laat vrykom nie. Alle mense het hy met die banvloek getref, soos die Here, die God van Israel, beveel het. Josua het hulle verslaan van Kades-Barnea tot by Gasa. Die hele Gosenstreek tot by Gibeon – al hierdie konings en hulle land het Josua met een veldtog verower, want die Here, die God van Israel, het vir Israel geveg. Josua en die hele Israel saam met hom, het teruggekeer na die kamp by Gilgal. Toe Jabin, die koning van Gasor, dit hoor, het hy 'n boodskap gestuur na Jobab, die koning van Madon, na die koning van Simron, na die koning van Agsaf en na die konings in die noorde: in die bergland, in die Araba suid van Gennesaret, in die Sjefela, en in die heuwelland by Dor in die weste – die Kanaäniete in die ooste en weste, die Amoriete, die Hetiete, en Feresiete, die Jebusiete in die bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispestreek. Hulle het met al hulle leërs saam met Jabin uitgetrek, met baie manskappe, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is en met 'n groot aantal perde en strydwaens. Al hierdie konings het kragte saamgesnoer, gegaan en kamp opgeslaan by die waters van Merom om teen Israel oorlog te voer. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want môre teen hierdie tyd sal Ek hulle almal doodgemaak aan Israel oorlewer. Hulle perde se hakskeensenings moet jy afkap, en hulle strydwaens moet jy verbrand.” Josua en al die weerbare manskappe saam met hom het hulle by die waters van Merom verras en hulle oorval. Die Here het hulle in die hand van Israel gegee, en Israel het hulle verslaan en agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispevallei in die ooste. Hulle het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug het nie. Josua het met hulle gemaak soos die Here vir hom gesê het: Hulle perde se hakskeensenings het hy afgekap en hulle strydwaens het hy verbrand. In daardie tyd het Josua teruggedraai, Gasor ingeneem en sy koning met die swaard doodgemaak. Vroeër was Gasor immers die belangrikste van al daardie koninkryke. Hy het elke lewende persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan, hulle met die banvloek getref. Niemand wat asemhaal, het oorgebly nie; en toe het hy Gasor afgebrand. Al hierdie koningstede, met al hulle konings, het Josua verower. Hy het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref soos Moses, die dienskneg van die Here, beveel het. Net die stede wat op puinheuwels staan, is nie deur Israel afgebrand nie. Gasor was die enigste uitsondering – Josua het net dit afgebrand. Al die buit van hierdie stede en die vee het die Israeliete vir hulleself gevat. Net die mense het hulle met die skerpte van die swaard getref, totdat hulle uitgedelg was. Hulle het niemand wat asemhaal, laat oorbly nie. Soos die Here Moses, sy dienskneg, beveel het, so het Moses vir Josua opdrag gegee, en presies so het Josua dit gedoen. Hy het niks agterweë gelaat van alles wat die Here Moses beveel het nie. Josua het hierdie hele landstreek verower: die bergland, die hele Negev, die hele Gosenstreek, die Sjefela en die Araba, die berggebiede van Israel en sy laer liggende dele, van die berg Galak af wat oploop na Seïr, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant die berg Hermon. Al hulle konings het hy gevange geneem, hulle neergevel en hulle doodgemaak. Vir 'n geruime tyd het Josua teen al die konings oorlog gevoer. Daar was nie 'n stad wat vrede gesluit het met die Israeliete nie, behalwe die Hewiete wat in Gibeon woon. Al hierdie stede het die Israeliete in die oorlog verower. Dit was immers deur die Here se toedoen dat hulle hulle harte verhard het om teen Israel oorlog te voer, sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en daar nie vir hulle genade sou wees nie – ja, sodat Israel hulle kon verdelg soos die Here Moses beveel het. Josua het in hierdie tyd die Enakiete gaan uitroei – uit die bergland, uit Hebron, Debir en Anab, uit die hele bergland van Juda en uit die hele bergland van Israel. Josua het hulle saam met hulle stede met die banvloek getref. Daar het geen Enakiete in die land van die Israeliete oorgebly nie; net in Gasa, Gat en Asdod het daar van hulle oorgebly. Josua het die hele landstreek verower, net soos die Here vir Moses gesê het. Josua het dit aan Israel as erfdeel gegee, ooreenkomstig die indeling van hulle stamme. Die land het toe gerus van oorlog. Die volgende konings van die land is deur die Israeliete verslaan, en hulle land is in besit geneem: Oorkant die Jordaan, aan die oostekant, van die Arnondal af tot by die berg Hermon, die hele Araba en ooswaarts was dit Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon gesetel was en regeer het van Aroër af, wat op die rand van die Arnondal lê, vanaf die middel van die dal, oor die helfte van Gilead en tot aan die Jabbokdal, die grens van die Ammoniete, en wat ook regeer het oor die Araba aan die oostekant vanaf die meer van Gennesaret tot by die See van die Araba, die Soutsee, aan sy oostekant in die rigting van Bet-Jesimot, suid tot onder aan die hange van Pisga en sy gebied; en Og, die koning van Basan, een van die oorblywende Refaïete wat in Astarot en in Edreï gesetel was en regeer het oor die berg Hermon, oor Salga en die hele Basan tot by die grens van die mense van Gesur en Maäga, die helfte van Gilead, en tot by die grens van Sihon, die koning van Gesbon. Moses, die dienskneg van die Here, en die Israeliete het hulle verslaan, en Moses, die dienskneg van die Here, het dit as eiendom aan die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse gegee. Die volgende is die konings van die land wat Josua en die Israeliete oorkant die Jordaan aan die westekant verslaan het, van Baäl-Gad in die Libanonvallei tot by die berg Galak wat oploop na Seïr. Josua het dit alles aan die stamme van Israel as eiendom gegee ooreenkomstig hulle indeling. In die bergland en die Sjefela, in die Araba, teen die berghange, in die woestyn en in die Negev, die gebied van die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, was dit die koning van Jerigo, een; die koning van Ai wat langs Bet-El geleë is, een; die koning van Jerusalem, een; die koning van Hebron, een; die koning van Jarmut, een; die koning van Lagis, een; die koning van Eglon, een; die koning van Geser, een; die koning van Debir, een; die koning van Geder, een; die koning van Gorma, een; die koning van Arad, een; die koning van Libna, een; die koning van Adullam, een; die koning van Makkeda, een; die koning van Bet-El, een; die koning van Tappuag, een; die koning van Gefer, een; die koning van Afek, een; die koning van Saron, een; die koning van Madon, een; die koning van Gasor, een; die koning van Simron-Meron, een; die koning van Agsaf, een; die koning van Taänag, een; die koning van Megiddo, een; die koning van Kedes, een; die koning van Jokneam by die Karmel, een; die koning van Dor by die heuwelland van Dor, een; die koning van Gojim by Gilgal, een; koning van Tirsa, een. Altesaam was dit 31 konings. Toe Josua oud en gevorderd in jare was, het die Here vir hom gesê: “Jy is oud en gevorderd in jare en 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word, is nog oor. Die volgende is die gebied wat nog oorbly: al die distrikte van die Filistyne en die hele gebied van die mense van Gesur; van die Sigor af wat langs Egipte lê, noordwaarts tot by die gebied van Ekron. Dit word as Kanaänitiese gebied gereken, naamlik die gebied van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat, en Ekron, en van die Awwiete. Vanaf die suide is dit die hele land van die Kanaäniete, en vanaf Ara, wat aan die Sidoniërs behoort, strek dit tot by Afek, by die grens van die Amoriete. Verder is daar die gebied van die mense van Gebal, en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af onder aan die voet van die berg Hermon tot by Lebo-Hamat. Al die inwoners van die bergland, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs – Ek self sal hulle voor die Israeliete verdryf. Laat dit in elk geval as erfdeel aan Israel toeval, soos Ek jou beveel het. Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel vir die nege stamme en die halwe stam van Manasse.” Saam met die ander halwe stam van Manasse het die stamme van Ruben en Gad hulle erfdeel wat Moses aan hulle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang, net soos Moses, die dienskneg van die Here, dit aan hulle gegee het: Van Aroër af, wat op die rand van die Arnondal lê, ja, vanaf die stad wat in die dal is, dan die hele plato, van Medeba tot Dibon, en al die dorpe van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het, tot by die grens van die Ammoniete; ook Gilead en die gebiede van die mense van Gesur en Maäga; die hele berg Hermon en die hele Basan tot by Salga – die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï regeer het. Hy was die laaste wat oorgebly het van die Refaïete. Moses het hulle verslaan en hulle uitgedryf. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäga verdryf nie. Die mense van Gesur en Maäga woon onder die Israeliete; dit is vandag nog so. Net aan die stam van Levi is geen erfdeel gegee nie. Die offergawes van die Here, die God van Israel, dit is hulle erfdeel, soos die Here vir hulle gesê het. Moses het aan die stam van die nageslag van Ruben, ooreenkomstig hulle familiegroepe, die volgende gegee, en dit het aan hulle behoort: die gebied van Aroër af wat op die rand van die Arnondal lê; ja, vanaf die stad wat in die dal is, en die hele plato by Medeba; Gesbon en al sy dorpe wat op die plato is; ook Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, Jahas, Kedemot, Mefaät, Kirjatajim, Sibma, Seret-Hassagar op die heuwel in die vallei, Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot. Dit was al die dorpe op die plato en die hele koninkryk van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het. Moses het hom en die Midianitiese leiers, Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde van Sihon wat in die land gewoon het, verslaan. Saam met hulle gesneuweldes was ook die waarsêer Bileam, seun van Beor, wat deur die Israeliete met die swaard om die lewe gebring is. Die grens van die nageslag van Ruben was die Jordaan en oewergebied. Dit was die erfdeel van die nageslag van Ruben, ooreenkomstig hulle familiegroepe – die dorpe met hulle gehuggies. Moses het aan die stam van Gad, die nageslag van Gad, ooreenkomstig hulle familiegroepe, die volgende gegee, en dié gebied het aan hulle behoort: Jaser, al die dorpe in Gilead en die helfte van die land van die Ammoniete tot by Aroër wat langs Rabba lê; van Gesbon tot by Ramat-Mispe en Betonim; van Maganajim tot by die gebied van Debir; in die Jordaanvallei was dit Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon; die res van die koninkryk van Sihon, die koning van Gesbon – die Jordaan en oewergebied tot by die punt van die See van Gennesaret oorkant die Jordaan aan die oostekant. Dit is die erfdeel van die nageslag van Gad, ooreenkomstig hulle familiegroepe – die dorpe met hulle gehuggies. Moses het aan die halwe stam van Manasse die volgende gegee; dit het behoort aan die halwe stam van die nageslag van Manasse, ooreenkomstig hulle familiegroepe: Hulle gebied was van Maganajim af, die hele Basan, die hele koninkryk van Og, die koning van Basan en die hele Gawwoot-Jaïr wat in Basan is – sestig dorpe altesaam. Die helfte van Gilead, asook Astarot en Edreï, die dorpe van die koninkryk van Og in Basan, is aan die nageslag van Magir, seun van Manasse, gegee, aan die helfte van die nageslag van Magir, ooreenkomstig hulle familiegroepe. Dit is die gebiede wat Moses nog in die vlaktes van Moab, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, teenoor Jerigo, as erfdeel aan hulle toegewys het. Maar aan die stam van Levi het Moses nie 'n erfdeel gegee nie. Die Here, die God van Israel, Hy is hulle erfdeel, soos Hy vir hulle gesê het. Die volgende is die gebiede wat die Israeliete in die land Kanaän as erfdeel ontvang het, wat Eleasar, die priester, en Josua, seun van Nun, asook die familiehoofde van die stamme van die Israeliete, as erfdeel aan hulle toegewys het deur loting oor hulle erfdeel, soos die Here by monde van Moses opdrag gegee het oor die nege en 'n half stamme. Moses het immers die erfdeel van die twee stamme en die halwe stam oorkant die Jordaan aan hulle gegee, maar vir die Leviete het hy nie 'n erfdeel tussen hulle gegee nie. Die nageslag van Josef was immers twee stamme, Manasse en Efraim. Aan die Leviete is nie 'n aandeel in die land gegee nie, behalwe dorpe om in te woon en meentgrond vir hulle vee en bates. Soos die Here Moses beveel het, so het die Israeliete gemaak en die land verdeel. Die nageslag van Juda het Josua in Gilgal genader, en Kaleb, seun van Jefunne, van die familie van Kenas, het vir hom gesê: “Jy self is bewus van die woorde wat die Here vir Moses, die man van God, gesê het oor my en oor jou in Kades-Barnea. Ek was veertig jaar oud toe Moses, die dienskneg van die Here, my uit Kades-Barnea gestuur het om die land te verken, en ek het aan hom verslag gedoen volgens my oortuiging. My volksgenote wat saam met my opgetrek het, het egter die harte van die volk ineen laat krimp, maar ek het die Here my God met volharding gevolg. Moses het daardie dag 'n eed afgelê, ‘Die grond waarop jou voet getrap het, aan jou sal dit as erfenis behoort, en aan jou nageslag vir altyd, omdat jy die Here my God met volharding gevolg het.’ “En nou, kyk, die Here het my laat leef, soos Hy gesê het, nou reeds vyf-en-veertig jaar nadat die Here hierdie woorde vir Moses gesê het toe Israel nog in die woestyn rondgetrek het. En nou, kyk, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud. Ek is vandag nog so sterk soos op die dag toe Moses my uitgestuur het. Soos my krag toe was, so is my krag nou nog om vir oorlog uit te trek en terug te keer. Gee dan nou hierdie berggebied vir my, soos die Here daardie dag gesê het. Jy het immers self op daardie dag gehoor dat die Enakiete daar is met groot versterkte stede. Miskien is die Here met my, dan sal ek hulle verdryf, soos die Here gesê het.” Josua het hom geseën en Hebron aan Kaleb, seun van Jefunne, gegee as erfdeel. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, seun van Jefunne, van die familie van Kenas; dit is vandag nog so. Want hy het die Here, die God van Israel, met volharding gevolg. Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die grootste onder die Enakiete. Die land het toe gerus van oorlog. Dit is die gebied wat deur loting toegewys is aan die stam van Juda se nageslag, vir hulle familiegroepe: langs die grens met Edom, en suidwaarts met die Sinwoestyn as die suidelikste punt. Hulle suidelike grens begin by die punt van die Soutsee, vanaf die tong wat na die suide uitsteek; dan strek dit verder na die suide van die Akrabbimhoogte, gaan verby Sin en loop suid van Kades-Barnea op. Daarna gaan dit verby Gesron en loop op na Addar, draai dan weg na Karka, gaan verby Asmon en strek verder na die Spruit van Egipte. Die verste punt van die grens is die see. Dit is hulle suidelike grens. Die grens in die ooste is die Soutsee tot by die monding van die Jordaan. Die grens aan die noordekant begin by die tong van die see, vanaf die monding van die Jordaan. Die grens loop op na Bet-Gogla en gaan noord van Bet-Araba verby; daarna gaan die grens op na die klip van Bohan, seun van Ruben. Die grens loop uit die vallei van Agor op na Debir, en draai noord na Gilgal, wat teenoor Adummimhoogte en aan die suidekant van die dal lê. Die grens loop verby die waters van En-Sjemesj; sy verste punt lê by En-Roghel. Die grens loop daarna op met die Ben-Hinnomdal na die heuwelrug van die Jebusiete, dit is Jerusalem, in die suide. Die grens loop verder op na die top van die berg, wat langs die Hinnomdal aan die westekant en aan die einde van die vallei van Refaïm in die noorde lê. Dan swaai die grens weg van die top van die berg na die fontein van die Water van Neftoag, en strek verder na die dorpe van die berg Efron. Die grens swaai daarna weg na Baäla, dit is Kirjat-Jearim. Vanaf Baäla draai die grens weswaarts na die berg Seïr, gaan verby die noordelike heuwelrug van die berg Jearim, dit is Kesalon, daal af na Bet-Semes en gaan verby Timna. Die grens strek verder na die noordelike heuwelrug van Ekron, swaai dan weg na Sikaron, gaan verby die berg Baäla en strek verder na Jabneël. Die verste punt van die grens is by die see. Die wesgrens is die Groot See en sy gebied. Dit is, aan alle kante, die grens vir die nageslag van Juda, vir hulle familiegroepe. Aan Kaleb, seun van Jefunne, is 'n deel gegee tussen die nageslag van Juda, ooreenkomstig die bevel van die Here aan Josua: Kirjat-Arba, dit is Hebron; Arba was die voorvader van Enak. Kaleb het die drie Enakiete, Sesai, Agiman en Talmai, die kinders van Enak, daar uitgedryf. Daarvandaan het hy opgetrek na die inwoners van Debir. Die naam van Debir was vroeër Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Die een wat Kirjat-Sefer aanval en inneem – vir hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.” Otniël, die seun van Kenas, Kaleb se broer, het die dorp toe ingeneem, en hy het sy dogter Agsa vir hom as vrou gegee. Met haar aankoms het sy hom aangespoor om by haar vader 'n stuk land te vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar: “Wat wil jy hê?” Sy sê toe: “Gee vir my 'n buitengewone geskenk. Omdat u vir my grond in die Negev gegee het, moet u vir my waterbronne gee.” Hy het toe vir haar die boonste en die onderste bronne gegee. Dit is die erfdeel van die stam van Juda se nageslag, vir hulle familiegroepe: Die dorpe aan die verste punt van die stam van Juda se nageslag, by die grens van Edom in die suide, was Kabseël, Eder, Jagur, Kina, Dimona, Adada, Kedes, Gasor, Jitnan, •Sif, Telem, Bealot, Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor, Amam, Sema, Molada, Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet, Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja, Baäla, Ijjim, Esem, Eltolad, Kesil, Gorma, Siklag, Madmanna, Sansanna, Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon – die dorpe met hulle gehuggies was altesaam 29. In die Sjefela was dit Estaol, Sora, Asna, Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim, Jarmut, Adullam, Sogo, Aseka, Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim – 14 dorpe met hulle gehuggies. Senan, Gadasa, Migdol-Gad, Dilan, Mispe, Jokteël, Lagis, Boskat, Eglon, Kabbon, Lagmas, Kitlis, Gederot, Bet-Dagon, Naäma en Makkeda – 16 dorpe met hulle gehuggies. Libna, Eter, Asan, Jiftag, Asna, Nesib, Keïla, Agsib en Maresa – 9 dorpe met hulle gehuggies. Ekron met sy omliggende dorpies en gehuggies; vanaf Ekron weswaarts, al die dorpe duskant Asdod met hulle gehuggies; Asdod met sy omliggende dorpies en gehuggies; Gasa met sy omliggende dorpies en gehuggies tot by die Spruit van Egipte en die Groot See met die kusgebied. In die bergland was dit Samir, Jattir, Sogo, Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir, Anab, Estemoa, Anim, Gosen, Golon en Gilo – 11 dorpe met hulle gehuggies. Arab, Duma, Esan, Janum, Bet-Tappuag, Afeka, Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior – 9 dorpe met hulle gehuggies. Maon, Karmel, Sif, Jutta, Jisreël, Jokdeam, Sanoag, Kajin, Giba en Timna – 10 dorpe met hulle gehuggies. Galgul, Bet-Sur, Gedor, Maärat, Bet-Anot en Eltekon – 6 dorpe met hulle gehuggies. Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba – 2 dorpe met hulle gehuggies. In die woestyn: Bet-Araba, Middin, Segaga, Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi – 6 dorpe met hulle gehuggies. Die nageslag van Juda was egter nie in staat om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Die Jebusiete het toe saam met die nageslag van Juda in Jerusalem bly woon; dit is vandag nog so. Die uitkoms van die lot vir die nageslag van Josef was soos volg: Die grens begin by die Jordaan teenoor Jerigo, aan die oostekant van die Jerigo-fonteine. Deur die droë deel loop die grens vanaf Jerigo op in die berggebied van Bet-El. Vanaf Bet-El strek dit verder na Lus en gaan dan verby die gebied van die mense van Ereg na Atarot. Dan daal dit wes, af na die gebied van die mense van Jaflet, tot by die grens van Bet-Goron-Onder, tot by Geser, met sy verste punt by die see. Die nageslag van Josef, Manasse en Efraim, het dit alles as erfdeel ontvang. Dit was die grens van die nageslag van Efraim, vir hulle familiegroepe: Die grens van hulle erfdeel was van Atrot-Addar aan die oostekant tot by Bet-Goron-Bo. Die grens strek verder tot by die see, met Migmetat aan die noordekant. Die grens draai oos na Taänat-Silo, en gaan aan die oostekant daarvan verby na Janoag. Van Janoag af loop dit af na Atarot en Naära, dit grens aan Jerigo en strek verder na die Jordaan. Van Tappuag af loop die grens wes langs die spruit by Kana, met sy verste punt by die see. Dit is die erfdeel van die stam van Efraim se nageslag, vir hulle familiegroepe. Daar was dorpe wat uitgehou is vir die nageslag van Efraim binne die erfdeel van die nageslag van Manasse – al die dorpe saam met hulle gehuggies. Hulle het egter nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het in Efraim bly woon, maar hulle moes dwangarbeid verrig; dit is vandag nog so. Dit is die gebied wat deur loting aan die stam van Manasse toegewys is; hy was immers die eersgeborene van Josef. Aan Magir, eersgeborene van Manasse en vader van Gilead, is Gilead en Basan toegewys, omdat hy 'n krygsman was. Aan die ander nakomelinge van Manasse is daar toe vir hulle familiegroepe grond toegewys: aan die nageslag van Abiëser, die nageslag van Gelek, die nageslag van Asriël, die nageslag van Segem, die nageslag van Gefer en aan die nageslag van Semida. Dit was bedoel vir hulle familiegroepe, die manlike nakomelinge van Manasse, die seun van Josef. Selofgad, seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, slegs dogters. Dit was die name van sy dogters: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Hulle het Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die leiers genader en gesê: “Die Here het self vir Moses opdrag gegee om aan ons 'n erfdeel te gee tussen ons broers. ” Josua het toe, volgens die bevel van die Here, 'n erfdeel aan hulle gegee tussen die broers van hulle vader. So het tien dele Manasse toegeval, behalwe nog die landstreke van Gilead en Basan, wat oorkant die Jordaan was. Want die dogters van die stam van Manasse het tussen sy seuns 'n erfenis ontvang, maar die landstreek Gilead was vir die ander nakomelinge van Manasse. Die grens van Manasse was van Aser tot Migmetat, wat teenoor Sigem lê. Dan loop die grens na regs, na die inwoners van En-Tappuag. Die landstreek van Tappuag het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het aan die nageslag van Efraim behoort. Die grens loop dan af met die spruit by Kana, suidwaarts met die spruit. Daar is dorpe wat aan Efraim behoort tussen die dorpe van Manasse, maar die gebied van Manasse lê noord van die spruit, en die verste punt daarvan is by die see. Die gebied aan die suidekant behoort aan Efraim, en aan die noordekant aan Manasse, met die see as sy grens. Dit grens aan Aser in die noorde en aan Issaskar in die ooste. In die gebied van Issaskar en Aser het Bet-San met sy omliggende dorpies, Jibleam met sy omliggende dorpies, die inwoners van Dor en die omliggende dorpies, die inwoners van En-Dor en die omliggende dorpies, die inwoners van Taänag en die omliggende dorpies, en die inwoners van Megiddo en die omliggende dorpies op drie van die heuwels aan Manasse behoort. Die nageslag van Manasse was nie in staat om hierdie stede te onderwerp nie, en die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie. Die nakomelinge van Josef het met Josua gepraat en gesê: “Waarom gee u vir ons met een keer se loting net een deel as erfdeel, terwyl ons 'n groot volk is en die Here ons tot nou toe geseën het?” Josua het vir hulle gesê: “As julle dan so 'n groot volk is, gaan self op na die beboste gebied en maak self vir julle daar in die land van die Feresiete en die Refaïete 'n gebied skoon, as die heuwelland van Efraim dan vir julle te nou is.” Die nakomelinge van Josef sê toe: “Die bergland is nie vir ons voldoende nie, en al die Kanaäniete wat in die valleigebiede woon, het ysterstrydwaens – dié in Bet-San en sy omliggende dorpies, en dié in die Jisreëlvallei.” Daarop het Josua vir die huis van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is 'n groot volk met groot krag. Julle kry nie net een loting nie, maar die bergland sal aan julle behoort, al is dit bebos. Maak dit skoon en dan sal die voetheuwels ook aan julle behoort; want julle sal die Kanaäniete verdryf, al het hulle ysterstrydwaens, al is hulle sterk.” Die hele volksvergadering van die Israeliete het in Silo byeengekom en die Tent van Ontmoeting daar opgeslaan. Die land is deur hulle onderwerp, maar daar het sewe stamme onder die Israeliete oorgebly wie se erfenis hulle nog nie verdeel het nie. Josua sê toe vir die Israeliete: “Hoe lank nog gaan julle sloer om die land wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, in besit te neem? Bring vir julle drie manne uit elke stam, sodat ek hulle kan uitstuur. Hulle moet dan gereedmaak, in die land rondbeweeg en daarvan 'n beskrywing gee met die oog op hulle erfdeel. Wanneer hulle by my terug is, moet hulle die gebied in sewe dele onder mekaar verdeel. Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou, maar julle moet die gebied in sewe dele afbaken in julle beskrywing en dit hier na my toe bring. Ek sal vir julle die lot werp hier voor die Here ons God. Daar is immers geen deel vir die Leviete onder julle nie, want die priesterskap van die Here is hulle erfenis. Gad, Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel wat Moses, die dienskneg van die Here, vir hulle gegee het, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang. ” Die manne het toe gereedgemaak en vertrek. Josua het dié wat op pad was, opdrag gegee om die land te beskryf: “Gaan, beweeg rond deur die land, beskryf dit en kom terug na my. Dan sal ek hier in Silo vir julle die lot werp voor die Here. ” Die manne het gegaan en die land deurkruis. Hulle het dit dorp vir dorp, volgens die sewe dele, in 'n •boekrol beskryf, en teruggekeer na Josua, na die kamp in Silo. Josua het vir hulle in Silo voor die Here die lot gewerp. Daar het Josua die land vir die Israeliete verdeel ooreenkomstig hulle indeling in stamme. Die lot is getrek vir die stam van Benjamin se nageslag ooreenkomstig hulle familiegroepe. Die gebied wat deur loting vir hulle aangewys is, was tussen dié van die nageslag van Juda en dié van die nageslag van Josef. Hulle grens aan die noordekant begin by die Jordaan. Die grens loop op na die heuwelrug noord van Jerigo, en dan loop dit weswaarts op in die bergland, met sy verste punt in die woestyn by Bet-Awen. Van daar gaan die grens verby Lus, dit is Bet-El, na die heuwelrug van Lus aan die suidekant. Die grens loop dan af na Atrot-Addar langs die berg wat suid van Bet-Goron-Onder lê. Dan swaai die grens weg en draai aan die westekant suid, weg van die berg wat suid van Bet-Goron lê. Die grens se verste punt is by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, 'n dorp van Juda se nageslag. Dit is die grens aan die westekant. Aan die suidekant strek die grens vanaf die buitewyke van Kirjat-Jearim. Dit strek weswaarts en gaan na die fontein van die Water van Neftoag. Daarna gaan die grens af na die voet van die berg langs die Ben-Hinnomdal, aan die noordekant van die vallei van Refaïm, verder af met die Hinnomdal na die heuwelrug van die Jebusiete in die suide, en dan af na En-Roghel. Dit swaai noord weg en strek verder na En-Sjemesj. Dit gaan nog verder na Gelilot, wat teenoor die Adummimhoogte lê. Daarna gaan dit af na die klip van Bohan, seun van Ruben. Die grens gaan na die heuwelrug teenoor die Araba in die noorde, loop af na die Araba en gaan dan na die heuwelrug by Bet-Gogla aan die noordekant. Die verste punt van die grens is by die noordelike tong van die Soutsee, by die monding van die Jordaan in die suide. Dit is die suidelike grens. Die Jordaan vorm die grens aan die oostekant. Dit dan is die erfdeel van die nageslag van Benjamin vir hulle familiegroepe, met sy grense aan alle kante. Die dorpe van die stam van Benjamin se nageslag, vir hulle familiegroepe, was Jerigo, Bet-Gogla en Kesisvallei; Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, Awwim, Para, Ofra, Kefar-Ammoni, Ofni en Geba – twaalf dorpe met hulle gehuggies; verder nog Gibeon, Rama, Beërot, Mispa, Kefira, Mosa, Rekem, Jirpeël, Tarala, Sela, Elef, Jebus, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat – veertien dorpe met hulle gehuggies. Dit dan is die erfdeel van die nageslag van Benjamin, vir hulle familiegroepe. Die uitkoms van die tweede loting was vir Simeon, vir die stam van Simeon se nageslag, vir hulle familiegroepe. Hulle erfdeel was binne die erfdeel van die nageslag van Juda. In hulle erfdeel was daar vir hulle Berseba, Seba, Molada, Gasar-Sual, Baäla, Esem, Eltolad, Betul, Gorma, Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susa, Bet-Lebaot en Sarugen – dertien dorpe met hulle gehuggies; dan nog Ajin, Rimmon, Eter en Asan – vier dorpe met hulle gehuggies; ja, al die gehuggies wat om hierdie dorpe lê tot by Baälat-Beër en Ramat-Negev. Dit was die erfdeel van die stam van Simeon se nageslag, vir hulle familiegroepe. Die erfenis van die nageslag van Simeon is geneem uit die deel van die nageslag van Juda. Omdat die deel van die nageslag van Juda te groot vir hulle was, het die nageslag van Simeon 'n erfdeel ontvang binne hulle erfdeel. Die derde lot is getrek vir die nageslag van Sebulon, vir hulle familiegroepe. Die grens van hulle erfdeel begin by Sarid. Hulle grens loop na die weste en na Marala; dit grens aan Dabbeset en die spruit wat langs Jokneam is. Van Sarid af draai dit ook na die ooste, langs die grens van Kislot-Tabor. Dit strek verder na Daberat en gaan dan op na Jafia; vandaar gaan dit na die ooste verby Gat-Gefer na Et-Kasin. Dit strek verder na Rimmon, swaai weg na Nea en draai dan na Gannaton. Dit is die grens aan die noordekant. Die verste punt daarvan is in die dal van Jiftag-El. Daarby kom Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem – twaalf dorpe met hulle gehuggies. Dit was die erfdeel van die nageslag van Sebulon vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies. Wat Issaskar betref, die uitkoms van die vierde loting was vir die nageslag van Issaskar, vir hulle familiegroepe. In hulle gebied was Jisreël, Kesulot, Sunem, Gafarajim, Sioon, Anagarat, Rabbit, Kisjon, Ebes, Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes. Die gebied grens aan Tabor, Sagasajim en Bet-Semes, met die verste punt van hulle grens by die Jordaan – sestien stede met hulle gehuggies. Dit dan is die erfdeel van die stam van Issaskar se nageslag vir hulle familiegroepe, die dorpe met hulle gehuggies. Die uitkoms van die vyfde loting was vir die stam van Aser se nageslag, ooreenkomstig hulle familiegroepe. In hulle gebied was Gelkat, Gali, Beten, Agsaf, Alammeleg, Amad en Misal. In die weste grens hulle gebied aan Karmel en Sigor-Libnat. Die grens draai dan na die ooste, na Bet-Dagon, en grens aan Sebulon en die dal van Jiftag-El in die noorde, asook aan Bet-Emek en Neïel. Dit strek verder links na Kabul, na Ebron, Regob, Gammon en Kana, tot by Groot-Sidon. Die grens draai dan na Rama en loop tot by die versterkte stad Tirus. Daarna draai die grens na Gosa, met sy verste punt by die see, in die omgewing van Agsib, Uma, Afek en Regob – twee-en-twintig dorpe met hulle gehuggies. Dit dan is die erfdeel van die stam van Aser se nageslag vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies. Wat die nageslag van Naftali betref, die uitkoms van die sesde loting was vir die nageslag van Naftali, vir hulle familiegroepe. Hulle grens was van Gelef af, van die akkerboom in Saänannim, oor Adami-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, met sy verste punt by die Jordaan. Die grens draai dan weswaarts na Asnot-Tabor, en vandaar strek dit verder na Gukok, en grens dan aan Sebulon in die suide en aan Aser in die weste, met die Jordaan aan die oostekant. Die versterkte stede was Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret, Adama, Rama, Gasor, Kedes, Edreï, En-Gasor, Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes – negentien dorpe met hulle gehuggies. Dit dan is die erfdeel van die stam van Naftali se nageslag, vir hulle familiegroepe, die dorpe met hulle gehuggies. Wat betref die stam van Dan se nageslag, vir hulle familiegroepe was die uitkoms van die sewende loting soos volg: Die gebied van hulle erfdeel was Sora, Estaol, Ir-Semes, Saälbin, Ajalon, Jitla, Elon, Timna, Ekron, Elteke, Gibbeton, Baälat, Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon, Me-Jarkon en Rakkon, saam met die gebied teenoor Jafo. Die gebied van die nageslag van Dan het vir hulle verlore gegaan. Die nageslag van Dan het toe opgetrek en teen Lesem oorlog gevoer. Hulle het dit ingeneem, dit verslaan met die skerpte van die swaard en dit in besit geneem. Hulle het hulle daar gevestig, en Lesem toe Dan genoem na die naam van hulle voorvader Dan. Dit dan is die erfdeel van die stam van Dan se nageslag vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies. Toe hulle klaar was met die toewysing van die land volgens sy grense, het die Israeliete vir Josua, seun van Nun, 'n erfdeel tussen hulle gegee. Op bevel van die Here het hulle vir hom die dorp gegee wat hy gevra het, Timnat-Serag, in die heuwelland van Efraim. Hy het die dorp herbou en daar gaan woon. Dit dan is die erfdele wat Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die familiehoofde, voor die Here, by die ingang van die •Tent van Ontmoeting in Silo, aan die stamme van die Israeliete deur loting toegewys het. So het hulle die verdeling van die land afgehandel. Die Here het met Josua gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle moet vir julleself die asielstede daarstel wat Ek vir julle by monde van Moses aangewys het, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, wat 'n persoon onopsetlik, sonder voorbedagte rade, doodgeslaan het, daarheen kan vlug. Dit sal vir julle 'n toevlugsoord wees teen bloedwrekers. Iemand kan dan na een van hierdie stede vlug, en by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel ten aanhore van die oudstes van daardie stad. Hulle moet hom by hulle in die stad opneem en vir hom 'n plek gee, sodat hy by hulle kan woon. As die bloedwreker hom agtervolg, mag hulle die een wat 'n lewe geneem het, nie aan hom uitlewer nie, omdat hy sy medemens sonder voorbedagte rade doodgeslaan het, sonder dat hy hom voorheen gehaat het. Hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing, en daarna tot die dood van die hoëpriester wat in dié dae daar sal wees. Dan mag die een wat 'n lewe geneem het, terugkeer, teruggaan na sy dorp en sy huis, na die dorp waarvandaan hy gevlug het.’ ” Hulle het toe die volgende dorpe afgesonder: Kedes, in Galilea in die bergland van Naftali; Sigem, in die heuwelland van Efraim; en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die bergland van Juda. Oorkant die Jordaan, oos van Jerigo, het hulle afgestaan: Beser in die woestyn, op die plato van die stam van Ruben se grondgebied; Ramot in Gilead, uit die stamgebied van Gad; en Golan in Basan, uit die stamgebied van Manasse. Dit was die stede waaroor daar ooreengekom is vir al die Israeliete en vir die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen hulle het, om heen te vlug, elkeen wat sonder opset 'n lewe geneem het, sodat hy nie sal sterf deur die hand van die bloedwreker voordat hy voor die volksvergadering verskyn het nie. Die familiehoofde van die Leviete het Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die familiehoofde van die stamme van die Israeliete genader en met hulle in Silo, in die land Kanaän, gepraat. Hulle het gesê: “Die Here self het by monde van Moses beveel dat dorpe aan ons afgestaan moet word om in te woon, asook hulle meentgrond vir ons vee.” Die Israeliete het toe, volgens die bevel van die Here, uit hulle erfdeel hierdie dorpe en hulle meentgrond aan die Leviete afgestaan. Die uitkoms van die lot vir die familiegroepe van Kehat was soos volg: Vir die nageslag van Aäron, die priester uit die Leviete, is daar uit die stamgebiede van Juda, Simeon en Benjamin dertien dorpe deur die lot toegeken; vir die res van die nageslag van Kehat is daar uit die stamgebiede van Efraim en Dan en die halwe stam van Manasse se familiegroepe tien dorpe deur die lot toegeken; vir die nageslag van Gerson is daar uit die stamgebiede van Issaskar, Aser en Naftali en die halwe stam van Manasse in Basan se familiegroepe dertien dorpe deur die lot toegeken; en vir die nageslag van Merari, vir hulle familiegroepe, was dit twaalf dorpe uit die stamgebiede van Ruben, Gad en Sebulon. Die Israeliete het aan die Leviete hierdie dorpe en hulle meentgrond afgestaan deur die lot, soos die Here by monde van Moses beveel het. Hulle het uit die stamgebiede van die nageslag van Juda en Simeon die volgende dorpe wat by die naam genoem word, afgestaan – dit was vir die nageslag van Aäron uit die familiegroepe van Kehat uit die Leviete, want die eerste loting was vir hulle: Hulle het aan hulle Kirjat-Arba afgestaan in die bergland van Juda, met sy meentgrond rondom. Dit is Hebron. Arba was die voorvader van Enak. Die saaigrond van die dorp en sy gehuggies het hulle vir Kaleb, seun van Jefunne, as erfgrond gegee. Vir die nageslag van die priester Aäron, het hulle Hebron met sy meentgrond afgestaan, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het; ook Libna met sy meentgrond, Jattir met sy meentgrond, Estemoa met sy meentgrond, Golon met sy meentgrond, Debir met sy meentgrond, Ajin met sy meentgrond, Jutta met sy meentgrond en Bet-Semes met sy meentgrond – nege dorpe van hierdie twee stamme. Uit die stamgebied van Benjamin was dit Gibeon met sy meentgrond, Geba met sy meentgrond, Anatot met sy meentgrond en Almon met sy meentgrond – vier dorpe. Die dorpe van die nageslag van Aäron, die priesters, met hulle meentgrond, was altesaam dertien. Vir die familiegroepe van die nageslag van Kehat, die res van die Leviete uit die nageslag van Kehat, was die dorpe wat deur die lot aangewys is uit die stamgebied van Efraim, die volgende: Hulle het Sigem, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, in die heuwelland van Efraim aan hulle afgestaan, ook Geser met sy meentgrond, Kibsajim met sy meentgrond en Bet-Goron met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die stamgebied van Dan was dit Elteke met sy meentgrond, Gibbeton met sy meentgrond, Ajalon met sy meentgrond en Gat-Rimmon met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die halwe stam van Manasse se gebied was dit Taänag met sy meentgrond en Gat-Rimmon met sy meentgrond – twee dorpe. Al tien hierdie dorpe met hulle meentgrond was vir die res van die familiegroepe van Kehat se nageslag. Uit die een helfte van die stamgebied van Manasse was daar vir die nageslag van Gerson uit die Levitiese familiegroepe, Golan in Basan, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, en Astarot met sy meentgrond – twee dorpe. Uit die stamgebied van Issaskar was dit Kisjon met sy meentgrond, Daberat met sy meentgrond, Jarmut met sy meentgrond en En-Gannim met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die stamgebied van Aser was dit Misal met sy meentgrond, Abdon met sy meentgrond, Gelkat met sy meentgrond en Regob met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die stamgebied van Naftali was dit Kedes in Galilea, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, Gammot-Dor met sy meentgrond en Kartan met sy meentgrond – drie dorpe. Die dorpe van die Gersongroep, vir hulle familiegroepe, was altesaam dertien, met hulle meentgrond. Vir die familiegroepe van Merari se nageslag, die res van die Leviete, was daar uit die stamgebied van Sebulon: Jokneam met sy meentgrond, Karta met sy meentgrond, Dimna met sy meentgrond en Nahalal met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die stamgebied van Ruben was dit Beser met sy meentgrond, Jahas met sy meentgrond, Kedemot met sy meentgrond, en Mefaät met sy meentgrond – vier dorpe. Uit die stamgebied van Gad was dit Ramot in Gilead, die asielstad vir dié wat doodslag begaan het, met sy meentgrond, Maganajim met sy meentgrond, Gesbon met sy meentgrond en Jaser met sy meentgrond – altesaam vier dorpe. Die loting van dorpe vir die oorblywende familiegroepe van die nageslag van Merari, Levitiese familiegroepe, was altesaam twaalf dorpe. Die Levitiese dorpe binne die erfgrond van die Israeliete was altesaam agt-en-veertig dorpe met hulle meentgrond. Elkeen van hierdie dorpe moes sy meentgrond rondom hê. So was dit by al hierdie dorpe. Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy beloof het om aan hulle voorvaders te gee. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon. Die Here het vir hulle rus gegee aan alle kante, net soos Hy aan hulle voorvaders beloof het. Van al hulle vyande kon niemand voor hulle staande bly nie. Al hulle vyande het die Here in hulle hand gegee. Nie 'n woord van al die goeie beloftes wat die Here aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is vervul. Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse geroep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het alles wat Moses, die dienskneg van die Here, julle beveel het, nagekom, en julle het my ook gehoorsaam in alles wat ek julle beveel het. Alreeds vir 'n baie lang tyd, tot vandag toe, het julle nie julle broers in die steek gelaat nie. Julle het die verpligtinge van die Here julle God se opdrag nagekom. En nou het die Here julle God vir julle broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het. Julle moet dan nou omdraai en na julle woonplekke gaan, na die land van julle erfgrond, wat Moses, die dienskneg van die Here, vir julle gegee het oorkant die Jordaan. Kom net die opdragte en die wet nougeset na wat Moses, die dienskneg van die Here, julle beveel het, naamlik om die Here julle God lief te hê, al sy paaie te volg, sy gebooie na te kom, aan Hom vas te hou, en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese. ” Josua het hulle geseën en weggestuur, en hulle het na hulle woonplekke gegaan. Vir die halwe stam van Manasse het Moses grond in Basan gegee; en vir die ander helfte van die stam het Josua grond gegee by hulle broers, aan die ander kant, aan die westekant van die Jordaan. Josua het ook, toe hy hulle na hulle woonplekke weggestuur en hulle geseën het, vir hulle gesê: “Keer terug na julle woonplekke met rykdom in oorvloed – met besonder baie vee, met silwer en goud, brons en yster en met 'n groot hoeveelheid klere. Deel die buit wat van julle vyande af kom met julle broers.” Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse, het omgedraai en weggegaan van die Israeliete af, van Silo af wat in die land Kanaän is, om na die landstreek Gilead te gaan, na die streek van hulle erfgrond waar hulle hulle gevestig het op bevel van die Here by monde van Moses. Toe hulle by Gelilot kom, wat in die land Kanaän langs die Jordaan is, het die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse, daar langs die Jordaan 'n altaar gebou, 'n groot, indrukwekkende altaar. Die Israeliete het berig gekry: “Kyk, die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het 'n altaar gebou op die grondgebied van die land Kanaän, by Gelilot langs die Jordaan, aan die Israeliete se kant.” Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering van die Israeliete byeengekom by Silo om teen hulle op te trek vir die stryd. Die Israeliete stuur toe vir Pinehas, seun van die priester Eleasar, na die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek, en saam met hom tien leiers, een leier vir elke stamvader van al die stamme van Israel. Elkeen van hulle was 'n stamhoof van die leërafdelings van Israel. Hulle het by die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek aangekom, met hulle gepraat en gesê: “So sê die hele volksvergadering van die Here, ‘Wat is die bedoeling van hierdie troubreuk wat julle teen die God van Israel pleeg deur vandag van die Here af weg te draai? Met die bou van 'n altaar vir julleself is julle vandag in opstand teen die Here. Is die sonde by Peor, waarvan ons tot vandag toe onsself nog nie gereinig het nie, vir ons onbelangrik? Die plaag het dan teen die volksvergadering van die Here uitgebreek! Julle draai vandag weg van die Here af. As julle vandag in opstand teen die Here is, is Hy môre vertoornd vir die hele volksvergadering van Israel. As die land van julle erfgrond egter •onrein is, kom dan oor na die land van die Here se eiendom, waar die •tabernakel van die Here staan, en kry vir julle erfgrond tussen ons. Maar teen die Here moet julle nie in opstand kom nie, en teen ons moet julle ook nie in opstand kom deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die Here ons God nie. Het Agan, seun van Serag, nie troubreuk gepleeg met die bangoed, sodat die hele volksvergadering van Israel getref is deur 'n oordeel uit toorn nie? Hy was nie die enigste wat vir sy sondeskuld gesterf het nie.’ ” Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse het daarop geantwoord. Hulle het vir die hoofde van die leërafdelings van Israel gesê: “Die God van die gode, die Here, die God van die gode, die Here, Hy weet, en Israel moet dit weet: As dit uit opstand of in troubreuk teen die Here was, moet u ons vandag nie spaar nie. As dit was om vir ons 'n altaar te bou om van die Here af weg te draai, en om •brandoffers en •graanoffers daarop te offer, of om •maaltydoffers daarop te bring – die Here, Hy sal rekenskap eis. Ons sweer dit is uit besorgdheid oor die saak dat ons dit gedoen het. Ons het gedink, in die toekoms sal julle kinders vir ons kinders sê, ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen? As 'n grens het die Here tussen ons en julle, nakomelinge van Ruben en Gad, die Jordaan daargestel. Julle het geen deel aan die Here nie.’ Julle kinders sal ons kinders laat ophou om vir die Here ontsag te hê. Ons het toe so gedink: Laat ons iets vir onsself doen deur die altaar te bou, nie vir brandoffers en slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte ná ons, om nog die diens van die Here in sy teenwoordigheid te kan verrig met ons brandoffers, slagoffers en maaltydoffers. Julle kinders sal dan nie in die toekoms vir ons kinders kan sê, ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’ Ons het gedink: As hulle dit in die toekoms vir ons en ons nageslag sou sê, sal ons antwoord, ‘Kyk na die weergawe van die altaar van die Here wat ons voorouers gemaak het – nie vir brandoffers nie, en nie vir slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Nooit sal ons teen die Here in opstand kom nie – deur vandag van die Here af weg te draai, deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en maaltydoffers, naas die altaar van die Here ons God wat voor sy tabernakel is nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die leërafdelings van Israel wat by hom was, die verduideliking hoor wat die nageslag van Ruben, Gad en Manasse gee, het hulle dit goedgevind. Toe sê Pinehas, seun van die priester Eleasar, vir die nageslag van Ruben, Gad en Manasse: “Vandag weet ons dat die Here in ons midde is, dat julle nie hierdie troubreuk teen die Here gepleeg het nie. Julle het dan ook die Israeliete gered uit die hand van die Here. ” Pinehas, seun van die priester Eleasar, en die leiers het teruggekeer van die nageslag van Ruben en Gad, van die Gileadstreek af na die land Kanaän, na die Israeliete, en aan hulle verslag gelewer. Die verslag het byval gevind by die Israeliete, en hulle het God geprys. Daar was nie meer sprake daarvan om teen hulle op te trek vir die stryd en die land waar die nageslag van Ruben en Gad woon, te verwoes nie. Die nageslag van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee: “Dit is 'n getuie tussen ons dat die Here God is.” Lank daarna, nadat die Here aan Israel rus gegee het van al hulle vyande rondom hulle, toe Josua al oud en gevorderd in jare was, het Josua die hele Israel ontbied – hulle oudstes, hoofde, regters en opsieners – en vir hulle gesê: “Ek is oud en gevorderd in jare. Julle het self alles gesien wat die Here julle God gedoen het aan al hierdie nasies, ter wille van julle. Die Here julle God, Hy is immers die Een wat vir julle geveg het. Kyk, ek het die land van hierdie nasies wat oorgebly het en van al die nasies wat Ek uitgeroei het, as erfdeel aan julle stamme laat toeval, van die Jordaan af tot by die Groot See in die weste. Die Here julle God, Hy sal hulle voor julle wegstoot en hulle voor julle verdryf, sodat julle hulle land in besit kan neem, soos die Here julle God julle beloof het. Wees baie vasberade om alles wat geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses noukeurig na te kom, om nie links of regs daarvan af te wyk nie, om nie met hierdie nasies wat by julle oorgebly het, om te gaan nie. Die name van hulle gode mag julle nie aanroep nie en nie daarby sweer nie. Julle mag hulle nie dien nie, en nie voor hulle in aanbidding buig nie. Maar aan die Here julle God moet julle vashou, soos julle tot vandag toe gedoen het. Die Here het groot en sterk nasies voor julle verdryf. Wat julle betref, tot vandag toe kon niemand voor julle staande bly nie. Net een van julle jaag 'n duisend op loop; want die Here julle God, Hy is die Een wat vir julle veg soos Hy julle beloof het. Wees uiters versigtig om ter wille van julleself net die Here julle God lief te hê. Want as julle ooit wegdraai en julle verbind met die res van hierdie nasies wat by julle oorgebly het, met hulle ondertrou, julle met hulle omgaan en hulle met julle, weet dan vir seker dat die Here julle God hierdie nasies nie langer voor julle sal verdryf nie. Hulle sal vir julle 'n vangnet en 'n valstrik word, 'n sweep vir julle sye en dorings in julle oë, totdat julle verdwyn van hierdie goeie grond af wat die Here julle God vir julle gegee het. Kyk, ek loop vandag die pad van almal op aarde. Erken met julle hele hart en julle hele wese dat nie een woord van al die goeie beloftes wat die Here julle God teenoor julle uitgespreek het, onvervuld gebly het nie; alles is vir julle vervul, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie. Soos elke goeie belofte wat die Here julle God aan julle gemaak het, vir julle vervul is, so sal die Here elke woord van onheil oor julle vervul, totdat Hy julle uitgedelg het van hierdie goeie grond af wat die Here julle God vir julle gegee het. Wanneer julle die verbond van die Here julle God oortree, wat Hy julle beveel het, en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal die toorn van die Here teen julle ontbrand, en julle sal vinnig verdwyn van die goeie land af wat Hy vir julle gegee het.” Josua het al die stamme van Israel in Sigem byeen laat kom. Hy het die oudstes van Israel, hulle hoofde, hulle regters en opsieners opgeroep, en hulle het in die teenwoordigheid van God gaan staan. Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Anderkant die Rivier het julle voorvaders in die verre verlede gewoon – Tera, die vader van Abraham en Nahor – en hulle het ander gode gedien. Maar Ek het julle voorvader Abraham van anderkant die Rivier af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek. Ek het sy nageslag vermeerder: Ek het aan hom Isak gegee, en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee. Ek het vir Esau die bergland Seïr gegee om dit in besit te neem, maar Jakob en sy seuns het afgetrek na Egipte. Ek het Moses en Aäron gestuur, en Ek het Egipte met plae getref, soos wat Ek gedoen het, en daarna het Ek julle laat wegtrek. Ek het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek, en julle het by die see aangekom. Die Egiptenare het julle voorouers met strydwaens en bemanning agtervolg tot by die Rietsee. Hulle het na die Here om hulp geroep, en Hy het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenare. Hy het die see oor hulle laat kom en dit het hulle bedek. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek in Egipte gedoen het. Daarna het julle vir 'n lang tyd in die woestyn gebly; en toe het Ek julle ingebring in die land van die Amoriete, wat oorkant die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle geveg, maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hulle land in besit geneem het. Ek het hulle voor julle verdelg. Toe het Balak, seun van Sippor, die koning van Moab, gereedgemaak en teen Israel geveg. Hy het Bileam, seun van Beor, ontbied om julle te vervloek. Ek wou egter nie na Bileam luister nie, en hy het julle toe net geseën. So het Ek julle uit sy hand gered. Julle het toe die Jordaan oorgesteek en by Jerigo aangekom. Die burgers van Jerigo, die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle hand gegee. Ek het 'n vlaag paniek voor julle uit gestuur en dit het hulle, die twee konings van die Amoriete, voor julle uitgedryf. Dit was nie deur julle swaarde en boë nie. Ek het vir julle land gegee waarvoor julle nie hard gewerk het nie, dorpe wat julle nie gebou het nie, waar julle woon, en wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie, maar waarvan julle eet.’ “ Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die Here; dien Hom met opregtheid en getrouheid. Verwyder die gode wat julle voorvaders anderkant die Rivier en in Egipte gedien het, en dien die Here. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” Hierop het die volk geantwoord en gesê: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie; want die Here ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. Die Here het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien, want Hy is ons God.” Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle sal nie in staat wees om die Here te dien nie, want Hy is 'n heilige God, Hy is 'n besitlike God, Hy sal nie julle oortreding en sondes vergewe nie. As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en 'n einde aan julle maak, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” Toe sê die volk vir Josua: “Nee, maar ons sal net die Here dien!” Daarop sê Josua vir die volk: “Julle is getuies teen julleself dat julle self die Here vir julle gekies het om te dien.” Hulle het geantwoord: “Ons is getuies.” “Verwyder dan nou die vreemde gode in julle midde en rig julle harte op die Here, die God van Israel.” Toe sê die volk vir Josua: “Ons sal net die Here ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.” Josua het op daardie dag namens die volk 'n verbond gesluit en vir hulle vaste voorskrifte en bepalings neergelê in Sigem. Josua het daardie woorde in die •boekrol met die Wet van God neergeskryf. Toe het hy 'n groot klip geneem en dit opgerig, daar onder die groot terebintboom wat by die heiligdom van die Here is. Josua het vir die hele volk gesê: “Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here wat Hy met ons gepraat het, gehoor; en hy sal teen julle 'n getuie wees, sodat julle nie julle God verloën nie.” Daarna het Josua die volk weggestuur, elkeen na sy erfdeel. Ná hierdie gebeure het Josua, seun van Nun, die dienskneg van die Here, op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Serag, wat in die heuwelland van Efraim is, noord van die berg Gaäs. Israel het die Here gedien gedurende Josua se leeftyd, en gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het en al die dade van die Here geken het wat Hy vir Israel gedoen het. Die beendere van Josef wat die Israeliete uit Egipte gebring het, het hulle in Sigem begrawe in die stuk veld wat Jakob vir honderd kesita gekoop het by die seuns van Gamor, die vader van Sigem. Dit was die nageslag van Josef se erfdeel. Eleasar, seun van Aäron, het ook gesterf. Hulle het hom begrawe op die heuwel wat aan sy seun Pinehas behoort het en wat in die heuwelland van Efraim aan hom gegee is. Ná Josua se dood het die Israeliete die Here geraadpleeg. Hulle het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek teen die Kanaäniete om teen hulle oorlog te maak?” Die Here het geantwoord: “Juda moet optrek. Kyk, Ek gee die land in hulle hand.” Juda sê toe vir sy broer Simeon: “Trek saam met my op na die gebied wat aan my toegewys is, sodat ons teen die Kanaäniete kan oorlog maak; dan sal ek ook saam met jou optrek na die gebied wat aan jou toegewys is.” Simeon het toe saam met hom gegaan. Juda het opgetrek en die Here het die Kanaäniete en die Feresiete in hulle hand gegee, sodat hulle by Besek tienduisend man verslaan het. By Besek het hulle Adoni-Besek teëgekom, teen hom oorlog gemaak en die Kanaäniete en die Feresiete verslaan. Toe Adoni-Besek vlug, het hulle hom agtervolg, hom gevang en sy duime en groottone afgekap. Adoni-Besek het gesê: “Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel kos bymekaargeskraap. Soos wat ek gedoen het, so het God my vergeld. ” Hulle het hom na Jerusalem geneem en daar is hy dood. Die nageslag van Juda het toe teen Jerusalem oorlog gevoer en dit ingeneem. Hulle het die stad met die skerpte van die swaard verslaan en dit aan die brand gesteek. Daarna het die nageslag van Juda afgegaan om teen die Kanaäniete wat in die bergland, in die Negev en in die Sjefela gewoon het, oorlog te maak. Juda het opgeruk na die Kanaäniete wat in Hebron woon; die naam van Hebron was vroeër Kirjat-Arba. Hulle het Sesai, Agiman en Talmai verslaan. Daarvandaan het hulle opgeruk na die inwoners van Debir; die naam van Debir was vroeër Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Die een wat Kirjat-Sefer aanval en inneem – vir hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.” Otniël, die seun van Kenas, Kaleb se jonger broer, het die dorp toe ingeneem, en hy het sy dogter Agsa vir hom as vrou gegee. Met haar aankoms het sy hom aangespoor om by haar vader 'n stuk land te vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar: “Wat wil jy hê?” Sy sê toe vir hom: “Gee vir my 'n buitengewone geskenk. Omdat u vir my grond in die Negev gegee het, moet u vir my waterbronne gee.” Hy het toe vir haar die boonste en die onderste bronne gegee. Die nakomelinge van Moses se skoonvader, die Keniet, het saam met die nakomelinge van Juda uit die Palmstad opgetrek na die Judese woestyn wat in die Negev by Arad lê. Hulle het daarheen gegaan en by die mense gaan woon. Juda het saam met sy broer Simeon gegaan, en hulle het die Kanaäniete verslaan wat in Sefat woon. Hulle het die dorp met die banvloek getref. Die dorp is toe Gorma genoem. Juda het ook Gasa en sy grondgebied, Askelon en sy grondgebied, en Ekron en sy grondgebied ingeneem. Die Here was met Juda, sodat hy die bergland in besit geneem het. Juda kon egter nie die inwoners van die vlakte verdryf nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad. Juda het Hebron vir Kaleb gegee soos Moses beloof het, en hy het die drie afstammelinge van Enak daaruit verdryf. En wat betref die Jebusiete wat in Jerusalem gewoon het – die nakomelinge van Benjamin het hulle nie verdryf nie. Die Jebusiete het saam met die nageslag van Benjamin in Jerusalem bly woon; dit is vandag nog so. Ook die huis van Josef het opgetrek – na Bet-El. Die Here was met hulle. Die huis van Josef het Bet-El laat verken. Die naam van die stad was vroeër Lus. Dié wat die plek dopgehou het, sien toe 'n man wat uit die dorp uitgaan en sê vir hom: “Wys ons asseblief hoe om in die stad in te kom, dan sal ons aan jou trou bewys.” Hy wys hulle toe hoe om in die stad in te gaan. Hulle het die stad met die skerpte van die swaard verslaan, maar die man en sy hele familiegroep het hulle weggestuur. Die man het toe na die land van die Hetiete gegaan en 'n dorp gebou wat hy Lus genoem het. Dit is die dorp se naam tot vandag toe. Manasse het egter nie Bet-San met sy omliggende dorpies en Taänag met sy omliggende dorpies verower nie, en nie die inwoners van Dor met sy omliggende dorpies, die inwoners van Jibleam met sy omliggende dorpies, en die inwoners van Megiddo met sy omliggende dorpies verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. Toe Israel sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie. Ook Efraim het nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het in Geser tussen hulle bly woon. Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verdryf nie. Die Kanaäniete het tussen hulle bly woon, maar moes dwangarbeid verrig. Aser het nie die inwoners van Akko en Sidon en ook nie dié van Aglab, Agsib, Gelba, Afek en Regob verdryf nie. Die stam van Aser het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon, want hulle het hulle nie verdryf nie. Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verdryf nie en het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon. Maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes vir hulle dwangarbeid verrig. Die Amoriete het die nageslag van Dan in die bergland ingedwing, want hulle het hulle nie toegelaat om af te gaan na die vlakte nie. Die Amoriete was vasberade om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon, maar toe die hand van die huis van Josef swaar op hulle begin druk, moes hulle dwangarbeid verrig. Die gebied van die Amoriete was vanaf die Akrabbimhoogte, vanaf Sela en verder op. Die •Engel van die Here het van Gilgal af opgegaan na Bogim en gesê: “Toe Ek julle uit Egipte laat optrek het en julle gebring het na die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, het Ek gesê, ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Hulle altare moet julle afbreek. ’ Maar julle het nie na my stem geluister nie. Waarom het julle so opgetree? En Ek sê ook vir julle, ‘Ek sal hulle nie voor julle uitdryf nie. Hulle gaan vir julle strikke word en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word. ’ ” Nadat die Engel van die Here hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk hardop gehuil. Hulle het daardie plek toe Bogim genoem, en daar vir die Here offers geslag. Josua het die volk weggestuur, en die Israeliete het elkeen na sy erfdeel gegaan om die land in besit te neem. Die volk het die Here gedien gedurende Josua se leeftyd, en ook gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het, hulle wat al die groot dade van die Here gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. Josua, seun van Nun, die dienskneg van die Here het op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Geres, wat in die heuwelland van Efraim geleë is, noord van die berg Gaäs. Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar 'n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hulle het die Baäls gedien. Hulle het die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland laat wegtrek het, verlaat, en agter ander gode aangeloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was. Hulle het voor hulle in aanbidding neergebuig en die Here uitgetart. Hulle het die Here verlaat en Baäl en die Astartes gedien. Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand. Hy het hulle oorgelewer in die hand van plunderaars, en dié het hulle geplunder. Hy het hulle oorgelewer in die hand van hulle vyande rondom hulle. Hulle kon nie meer standhou voor hulle vyande nie. In al die veldtogte wat hulle onderneem het, was die hand van die Here teen hulle, ten kwade, net soos die Here gesê het, ja, net soos die Here vir hulle gesweer het. Maar wanneer die nood vir hulle op sy hoogste was, het die Here rigters laat opstaan. Hulle het die volk dan verlos uit die hand van dié wat hulle geplunder het. Ook na hulle rigters het hulle nie geluister nie, want hulle het agter ander gode aan gehoereer en voor hulle in aanbidding gebuig. Hulle het gou afgewyk van die pad wat hulle voorouers gevolg het in gehoorsaamheid aan die Here se gebooie. Hulle het nie so opgetree nie. Wanneer die Here vir hulle rigters laat opstaan het, was die Here met die rigter, en het Hy hulle verlos uit die hand van hulle vyande solank die rigter geleef het. Die Here het hulle immers jammer gekry vanweë hulle gekreun oor dié wat hulle verdruk en onderdruk het. Maar wanneer die rigter sterf, het hulle nog meer ontaard as hulle ouers deur agter ander gode aan te loop, hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig. Hulle het nie enige van hulle dade en hardnekkige optrede laat vaar nie. Dan het die toorn van die Here teen Israel ontbrand, en Hy het gesê: “Omdat hierdie nasie my verbond wat Ek hulle voorvaders opgelê het, oortree het, en nie na my stem geluister het nie, sal Ek ook nie voortgaan om enigiemand voor hulle te verdryf nie – nie enige van die nasies wat Josua laat oorbly het toe hy dood is nie – om Israel sodoende deur hulle te toets: Gaan hulle by die Here se paaie hou deur daarop te loop soos hulle voorouers daarby gehou het, of nie?” Daarom het die Here daardie nasies met rus gelaat deur hulle nie dadelik te verdryf nie. Hy het hulle ook nie in Josua se hand oorgegee nie. Dit is die nasies wat die Here met rus gelaat het, om Israel deur hulle te toets – dit is nou almal wat nie ervaring gehad het van al die oorloë in Kanaän nie – net sodat die geslagte van die Israeliete ervaring kon opdoen om te leer oorlog maak, ten minste dié wat nie voorheen daarmee vertroud was nie: die vyf regeerders van die Filistyne, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat op die Libanongebergte gewoon het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat. Hulle was daar sodat die Here Israel deur hulle kon toets, om vas te stel of Israel die gebooie van die Here wat Hy hulle voorouers by monde van Moses beveel het, sal gehoorsaam. Die Israeliete het toe tussen die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete gewoon, en hulle dogters vir hulle as vroue geneem, hulle eie dogters aan hulle seuns gegee, en hulle gode gedien. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en asjeras gedien. Toe het die toorn van die Here teen Israel ontbrand, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Kusan-Risatajim, die koning van Aram-Naharajim. Die Israeliete het Kusan-Risatajim agt jaar lank gedien. Toe het die Israeliete na die Here om hulp geroep. Hy het 'n verlosser vir die Israeliete laat opstaan, wat hulle verlos het. Dit was Otniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb. Die Gees van die Here het op hom gerus en hy het Israel gerig. Hy het uitgetrek om oorlog te voer, en die Here het vir Kusan-Risatajim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan-Risatajim gekry het. Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad. Toe het Otniël, seun van Kenas, gesterf. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het Eglon, die koning van Moab, teen Israel versterk, omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. Eglon het die Ammoniete en Amalekiete by hom byeengebring. Hy het gegaan, Israel verslaan en die Palmstad ingeneem. Daarna het die Israeliete Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien. Die Israeliete het na die Here om hulp geroep, en die Here het vir hulle 'n verlosser laat opstaan. Dit was Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, 'n man wat linkshandig was. Die Israeliete het hom gestuur met belasting vir Eglon, die koning van Moab. Ehud het vir hom 'n swaard gemaak met twee snykante wat 'n gomed lank was. Hy het dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord. Hy gaan bied toe die belasting aan vir Eglon, die koning van Moab. Eglon was 'n baie vet man. Nadat hy die belasting nadergebring het, het hy die manskappe wat die belasting gedra het, laat gaan. Self het hy by die afgodsbeelde wat by Gilgal is, teruggedraai. “Ek het 'n geheime boodskap vir u, o koning,” het hy gesê. Eglon het gesê: “Stilte!” waarop almal wat hom bystaan, toe uitgegaan het. Maar Ehud het na hom toe ingegaan, waar hy in die koel bovertrek sit wat vir die koning alleen bedoel was. “Ek het 'n boodskap van God vir u,” het Ehud gesê. Toe Eglon van die troon af opstaan, steek Ehud sy linkerhand uit, vat die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy maag in, sodat selfs die hef agter die lem ingaan en die vet die lem omsluit; want hy het nie die swaard uit sy maag uitgetrek nie. Hy is toe by die geheime uitgang uit. Ehud het na die pilaargang uitgegaan, maar hy het eers die deure na die bovertrek agter hom toegemaak en gesluit. Hy was net uit, toe daag Eglon se dienaars op en sien: Kyk, die deure na die bovertrek is dan gesluit! Hulle sê toe: “Hy is seker maar besig om sy voete te bedek in die koel kamer.” Hulle het gewag totdat hulle verleë geraak het, maar kyk, niemand het die deure van die bovertrek oopgemaak nie. Hulle vat toe 'n sleutel en sluit oop. En daar lê hulle heer op die grond – morsdood! Ehud het ontvlug terwyl hulle bly talm het. Hy is by die afgodsbeelde oor die grens en het na Seïra ontvlug. Daar aangekom, het hy in die heuwelland van Efraim die •ramshoring laat blaas. Die Israeliete het toe saam met hom afgetrek uit die bergland, met hom aan die voorpunt. Hy het vir hulle gesê: “Volg my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand. ” Hulle het toe afgetrek agter hom aan en die driwwe van die Jordaan na Moab beset. Niemand is toegelaat om deur te gaan nie. Hulle het Moab in dié tyd verslaan – ongeveer tienduisend man, almal stewige manne, almal bekwame manne – nie een het ontvlug nie. Op daardie dag moes Moab die knie buig voor die mag van Israel. Daarna het die land tagtig jaar lank rus gehad. Ná Ehud was dit Samgar, seun van Anat. Hy het die Filistyne verslaan, seshonderd man, met 'n osdrywerstok. Ook hy het Israel verlos. Ná Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het hulle toe oorgelewer in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Gasor regeer het, en in die hand van Sisera, die bevelvoerder van sy leër. Hy was gesetel in Garoset-Gojim. Die Israeliete het na die Here om hulp geroep, want Sisera het negehonderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank wreed mishandel. Debora, 'n profetes, die vrou van Lappidot, het in daardie tyd vir Israel as rigter opgetree. Sy het altyd onder die palm van Debora gesit, tussen Rama en Bet-El in die heuwelland van Efraim, en die Israeliete het na haar opgegaan vir beslissings. Sy het Barak, seun van Abinoam, uit Kedes in Naftali ontbied en vir hom gesê: “Het die Here, die God van Israel, nie hierdie opdrag gegee nie? ‘Gaan, trek saam op die berg Tabor! Neem tienduisend man uit die nageslag van Naftali en Sebulon saam met jou; dan sal Ek vir Sisera, die bevelvoerder van Jabin se leër, met sy strydwaens en troepe na jou lok, na die Kisonspruit. Ek gee hom in jou hand.’ ” Maar Barak het vir haar gesê: “As jy met my saamgaan, sal ek gaan; maar as jy nie met my saamgaan nie, sal ek nie gaan nie.” Sy sê toe: “Ek sal beslis met jou saamgaan. Dit sal egter nie tot jou eer strek op die pad waarop jy gaan nie, want in die hand van 'n vrou sal die Here Sisera oorlewer.” Debora staan toe op en gaan saam met Barak na Kedes. Barak het Sebulon en Naftali na Kedes opgeroep. Tienduisend man het in sy voetspore opgetrek, en Debora het saam met hom opgetrek. Geber, die Keniet, het van die Keniete afgeskei, van die nageslag van Gobab, Moses se skoonvader. Hy het sy tent opgeslaan by die akkerboom in Saänannim wat naby Kedes is. Toe hulle vir Sisera berig bring dat Barak, seun van Abinoam, na die berg Tabor opgetrek het, het Sisera sy hele strydwamag, negehonderd ysterstrydwaens, en al die manskappe wat by hom was, opgeroep uit Garoset-Gojim na die Kisonspruit. Toe sê Debora vir Barak: “Maak gereed, want vandag is die dag waarop die Here Sisera in jou hand gee. Trek die Here self nie voor jou uit nie?” Daarop het Barak van die berg Tabor afgetrek met tienduisend man agter hom. Die Here het Sisera, sy hele strydwamag en sy hele leër voor Barak in verwarring gebring deur die skerpte van die swaard. Sisera het van sy strydwa afgeklim en te voet gevlug. Barak het egter die strydwamag en leër agtervolg tot by Garoset-Gojim. Sisera se hele leër het deur die skerpte van die swaard geval; nie een het oorgebly nie. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber, die Keniet, want daar was 'n vredesooreenkoms tussen Jabin, die koning van Gasor, en die huis van Geber, die Keniet. Jael het uit die tent gekom, Sisera tegemoet, en vir hom gesê: “Draai af, my heer, draai af na my. Moenie bang wees nie!” Hy het na haar, na die tent afgedraai en sy het hom met 'n deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Gee my asseblief 'n bietjie water om te drink, want ek is dors.” Sy maak toe die leersak met melk oop, en laat hom drink. Sy het hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die opening van die tent en as hier iemand aankom en vir jou vra, ‘Is daar iemand hier?’ moet jy sê, ‘Nee!’ ” Maar Jael, die vrou van Geber, het 'n tentpen gevat en met die hamer in haar hand het sy stilletjies ingegaan na hom toe. Sy het die tentpen in sy slaap ingeslaan, sodat dit in die grond ingegaan het. Hy was vas aan die slaap van uitputting, en het gesterf. Juis toe Barak besig was om Sisera te agtervolg, kom Jael uit die tent, hom tegemoet, en sê vir hom: “Kom, ek sal jou die man wys wat jy soek.” Hy het saam met haar ingegaan, en kyk, daar lê Sisera dood met die tentpen deur sy slaap! So het God op daardie dag vir Jabin, die koning van Kanaän, die knie laat buig voor die Israeliete. Die hand van die Israeliete het algaande swaarder gedruk op Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, vernietig het. Op daardie dag het Debora en Barak, seun van Abinoam, gesing: “Wanneer hare onversorg is in Israel, wanneer manskappe vrywillig aanmeld – prys die Here! Luister, konings; gee aandag, regeerders! Ek, vir die Here wil ek sing; ek wil die Here, die God van Israel besing. Here, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U vooruit gestap het uit die gebied van Edom, het die aarde gebewe; selfs die hemel het gegiet, ja, die wolke het water gegiet. Berge het gevloei voor die Here, die Een van Sinai, voor die Here, die God van Israel. “In die tyd van Samgar, seun van Anat, in die tyd van Jael, was die paaie verlate, het dié wat op reis gaan die kronkelpaaie gevolg. Krygers het ontbreek; in Israel het hulle ontbreek, totdat jy, Debora, opgestaan het, totdat jy, 'n moeder in Israel, opgestaan het. Nuwe gode is gekies! Was daar toe vegters in die poorte? Was skild of steekspies te sien by veertigduisend in Israel? My hart is by die bevelvoerders van Israel, die vrywilligers onder die volk. Prys die Here! “Julle wat op wit eselinne ry, wat op saalkleedjies sit, ook julle wat langs die pad loop – basuin dit uit, nog harder as die stemme van hulle wat troppe skei tussen die drinkbakke! Daar moet hulle die reddingsdade van die Here oorvertel, die reddingsdade van sy krygers in Israel. Dan kom die manskappe van die Here af na die poorte. “ ‘Ontwaak, ontwaak, Debora! Ontwaak, ontwaak, sing 'n lied! Staan op, Barak; voer jou gevangenes weg, seun van Abinoam! ’ “Toe het dié wat oorgebly het, afgekom na dié wat sterk is; die manskappe van die Here het as helde afgekom na my. Uit Efraim kom hulle wie se wortels in Amalek is; hulle is agter jou, Benjamin, as jou manskappe!” Uit Magir kom die bevelvoerders af, en uit Sebulon – hulle wat die skrywerstaf dra. •Aanvoerders uit Issaskar is by Debora. Issaskar is soos Barak – hy is in die vlakte uitgestuur op sy spoor. In die geledere van Ruben was die oorwegings van die hart groot. Waarom het jy tussen die saalsakke bly sit om te luister na die fluitspel by die veetroppe? In die geledere van Ruben was die oorwegings van die hart groot. Gilead het oorkant die Jordaan vertoef, en Dan – waarom is hy tydelik by die skepe? Aser sit langs die seestrand, by sy vasmeerplekke vertoef hy. Sebulon is manskappe wat die dood uittart, ook Naftali, op die heuwels in die veld. “Konings het gekom, hulle het geveg; toe het die konings van Kanaän geveg by Taänag, langs die water van Megiddo; maar nie 'n enkele stuk silwer kon hulle buit nie. Uit die hemelruim het die sterre geveg; uit hulle wentelbane het hulle teen Sisera geveg. Die Kisonspruit het hulle weggespoel, die oeroue spruit, die Kisonspruit! “Ek wil voortgaan met krag: Daarna het die perdepote gedreun van die jaagtog, die jaagtog van sy hingste! ‘Vervloek Meros, ’ sê die •engel van die Here, ‘vervloek sy inwoners volkome; want hulle het nie gekom ter ondersteuning van die Here nie, ter ondersteuning van die Here teen die helde nie.’ “Geseënd onder die vroue is Jael, die vrou van Geber, die Keniet, geseënd onder die vroue in tente. Water het hy gevra, melk het sy gegee, in 'n kom geskik vir magtiges het sy dikmelk aangebied. Haar hand steek sy uit na die tentpen, haar regterhand na die werkers se hamer. Sy slaan Sisera met die hamer, verpletter sy kop; sy verbrysel, sy deurboor sy slape. Aan haar voete sak hy inmekaar, hy val, bly lê; aan haar voete sak hy inmekaar, hy val; waar hy inmekaarsak, daar val hy, neergeslaan. “Deur die venster kyk sy af, die moeder van Sisera roep klaend deur die latwerk: ‘Waarom sloer sy strydwa om te kom? Waarom talm die gerammel van sy strydwaens?’ Die slimstes van haar hofdames antwoord haar; ja, sy sê dit ook vir haarself: ‘Kom hulle nie af op buit en verdeel dit nie? 'n Vrouelyf, twee vrouelywe vir elk van die helde, 'n buit van veelkleurige doeke vir Sisera, 'n buit van veelkleurige doeke, kleurvol geweefde doeke, twee kleurvol geweefde doeke, vir die halse van hulle wat gebuit is.’ “So moet al u vyande omkom, Here! Maar hulle wat Hom liefhet, is soos die son wat opkom in sy krag! ” Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die hand van die Midianiete. Die hand van die Midianiete het swaar op Israel gerus. Vanweë die Midianiete het die Israeliete vir hulle skuilplekke in die berge ingerig, ook grotte en bergvestings. Telkens wanneer die Israeliete gesaai het, trek die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste op. Hulle trek teen Israel op, slaan by hulle kamp op en verwoes die opbrengs van die land tot by Gasa. Hulle laat dan geen lewensmiddele in Israel oorbly nie, ook nie 'n skaap, 'n bees of 'n donkie nie. Want hulle, met hulle veetroppe en tente, het opgetrek en soos groot swerms treksprinkane ingekom – hulle en hulle kamele was ontelbaar. Hulle het die land binnegeval om dit te verwoes. Israel het heeltemal verarm vanweë die Midianiete, en die Israeliete het na die Here om hulp geroep. Toe die Israeliete na die Here om hulp roep oor die Midianiete, het die Here iemand, 'n profeet, na die Israeliete gestuur. Hy het vir hulle gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Dit is Ek wat julle uit Egipte laat optrek het; Ek het julle laat wegtrek uit die plek van slawerny. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en van almal wat julle mishandel. Ek het hulle voor julle uitgedryf en hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: “Ek, die Here, is julle God. Julle mag nie ontsag hê vir die gode van die Amoriete in wie se land julle woon nie.” Maar julle het na my stem nie geluister nie.’ ” Daarna het die •Engel van die Here gekom en gaan sit onder die terebintboom by Ofra, wat aan Joas van die familie van Abiëser behoort. Sy seun Gideon was juis besig om koring uit te slaan in die parskuip, om dit vinnig teen die Midianiete te beveilig. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die Here dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die Here ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die Here na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die Here sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.” Maar hy het vir die Here gesê: “As ek dan guns gevind het in u oë, gee vir my 'n teken dat dit U is wat met my praat. Moet asseblief nie hiervandaan weggaan totdat ek by U terug is, my offer saamgebring en dit voor U neergesit het nie. ” Hy het geantwoord: “Goed, Ek sal bly totdat jy terugkom.” Gideon gaan toe en berei 'n boklam voor en ongesuurde brood van 'n efa meel. Die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous het hy in 'n pot gegooi. Hy het dit na Hom uitgebring onder die terebintboom en dit aangebied. Daarop sê die Engel van God vir hom: “Neem die vleis en die ongesuurde brood, sit dit hier op die rots neer en gooi die sous daaroor.” Hy het toe so gemaak. Toe steek die Engel van die Here die wandelstok in sy hand uit en raak met die punt aan die vleis en die ongesuurde brood. Vuur het uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer. Die Engel van die Here het voor sy oë verdwyn, en Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was. Toe sê Gideon: “Ag, Here, my Heer! Want nou het ek die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien! ” Maar die Here sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie! ” Gideon het toe daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem “Die Here is vrede”. Tot vandag toe is dit nog daar in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Nog in daardie selfde nag het die Here vir hom gesê: “Neem die bul wat aan jou vader behoort, die tweede bul, wat sewe jaar oud is. Sloop die altaar van Baäl wat aan jou vader behoort. Die asjera wat langsaan is, moet jy afkap. Bou dan vir die Here jou God 'n altaar op die hoogste punt van hierdie vesting – netjies gestapel. Neem daarna die tweede bul en offer hom as •brandoffer met die hout van die asjera wat jy gaan afkap.” Gideon het tien manne van sy dienaars geneem en gedoen wat die Here vir hom gesê het. Maar aangesien hy te bang was vir sy familie en die manne van die dorp om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. Toe die manne van die dorp vroeg die oggend opstaan – kyk, die altaar van Baäl is afgebreek, die asjera wat langsaan was, is afgekap, en die tweede bul is as brandoffer gebring op die nuutgeboude altaar! Hulle vra toe vir mekaar: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het ondersoek ingestel en navraag gedoen. Daar is toe gesê: “Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen.” Toe sê die mense van die dorp vir Joas: “Bring jou seun uit, want hy moet sterf omdat hy die altaar van Baäl afgebreek en omdat hy die asjera langsaan afgekap het.” Maar Joas sê vir almal wat om hom saamgedrom het: “Wil julle vir Baäl die stryd voer? Of moet julle hom red? Wie ook al vir hom die stryd voer, sal vanoggend nog sterf! As hy 'n god is, laat hy vir homself die stryd voer wanneer iemand sy altaar omgegooi het.” Op daardie dag het hulle vir Gideon die naam Jerubbaäl gegee, met die woorde: “Laat Baäl teen hom die stryd voer, want hy het sy altaar afgebreek.” Al die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste het intussen hulle magte saamgesnoer, die grens oorgesteek en kamp opgeslaan in die Jisreëlvlakte. Die Gees van die Here het van Gideon besit geneem; hy het op die •ramshoring geblaas, en die familie van Abiëser is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur die hele Manasse gestuur, en ook hulle is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur Aser, Sebulon en Naftali gestuur, en hulle het by hulle aangesluit. Toe sê Gideon vir God: “As U werklik deur my toedoen Israel wil verlos, soos U gesê het – kyk, ek sit 'n pasgeskeerde vag op die dorsvloer; as daar net op die vag dou is, maar al die grond is droog, sal ek weet dat U Israel deur my toedoen gaan verlos, soos U gesê het.” Dit was toe so: Toe hy vroeg die volgende oggend die vag uitwring, het hy 'n kom vol water uit die vag gepers. Toe sê Gideon vir God: “Laat u toorn tog nie teen my ontbrand nie. Ek wil net nog een keer praat. Ek wil asseblief net nog 'n keer met die vag 'n toets doen. Laat dit tog net op die vag droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” God het dit daardie nag so gedoen: Dit was net op die vag droog, terwyl daar oral op die grond dou was. Jerubbaäl, dit is Gideon, en al die manskappe wat by hom was, het vroeg opgestaan en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van die Midianiete was aan sy noordekant, vanaf die heuwel Morê in die vlakte. Die Here sê toe vir Gideon: “Die manskappe wat by jou is, is vir My te veel om die Midianiete in hulle hand te gee, anders spog Israel teenoor My en sê, ‘My eie hand het my verlos.’ Kondig dan nou aan, ten aanhore van die manskappe, ‘Wie ook al bang en aan die bewe is, kan omdraai en wegvlug van die berg Gilead. ’ ” Van die manskappe het daar toe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly. Daarop sê die Here vir Gideon: “Die manskappe is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsif. Elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet met jou saamgaan’, hy moet met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet nie met jou saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” Hy het die manskappe laat afgaan na die water. Die Here sê toe vir Gideon: “Almal wat met hulle tong van die water oplek soos 'n hond dit oplek, moet jy apart hou van almal wat op hulle knieë afsak om te drink.” Die getal manne wat opgelek het, was driehonderd; al die ander manskappe het op hulle knieë afgesak om water te drink. Toe sê die Here vir Gideon: “Met die driehonderd man wat die water opgelek het, gaan Ek julle verlos. Ek sal die Midianiete in jou hand gee. Al die ander manskappe kan maar gaan, elkeen na sy woonplek.” Die driehonderd man het toe die padkos wat die manskappe by hulle gehad het en hulle •ramshorings geneem. Al die ander manne van Israel het Gideon weggestuur, elkeen na sy tente. Maar die driehonderd man het hy teruggehou. Die kamp van die Midianiete was onderkant hom in die vlakte. Gedurende daardie nag het die Here vir hom gesê: “Staan op, gaan af na hulle kamp; want Ek gee hulle in jou hand. Maar as jy bang is om af te gaan, moet jy en Pura, jou dienaar, afgaan na die kamp en luister wat hulle sê. Daarna sal jy die moed hê om af te gaan, in die kamp in.” Toe gaan hy en sy dienaar Pura af tot by die kant van die slagordes wat in die kamp was. Die Midianiete, die Amalekiete en al die mense uit die ooste het in die vlakte gelê soos groot swerms treksprinkane, en hulle kamele was ontelbaar, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Toe Gideon daar kom, vertel 'n man juis vir sy vriend van sy droom. “Kyk,” het hy gesê, “ek het 'n droom gehad. Daar was 'n ronde garsbrood wat in die kamp van die Midianiete inrol, tot by 'n tent kom en dit tref, sodat dit val. Dit het die tent laat omdop, sodat dit daar gelê het.” Sy vriend antwoord toe en sê: “Dit kan niks anders wees nie as die swaard van Gideon, seun van Joas, die Israeliet. God het die Midianiete en die hele kamp in sy hand gegee.” Toe Gideon die vertelling oor die droom en die uitleg daarvan hoor, het hy dadelik in aanbidding neergebuig. Hy het na die kamp van Israel teruggegaan en gesê: “Staan op! Want die Here het die kamp van die Midianiete in julle hand gegee.” Hy verdeel toe die driehonderd man in drie eenhede, en gee vir almal ramshorings in die hand en leë kruike met fakkels in die kruike. Hy sê vir hulle: “Hou my dop, en maak so: Doen presies wat ek doen wanneer ek by die kant van die kamp kom. Wanneer ek en almal wat by my is op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas, rondom die hele kamp, en julle moet skreeu, ‘Vir die Here en vir Gideon!’ ” Gideon en die honderd man wat by hom was, kom toe by die kant van die kamp aan teen die begin van die middelste nagwaak, net toe die wagte behoorlik opgestel was. Hulle blaas toe op die ramshorings en breek die kruike wat in hulle hande was, stukkend. Die drie eenhede het tegelyk op die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, in hulle linkerhande die fakkels gehou, en in hulle regterhande die ramshorings om daarop te blaas. Hulle het uitgeroep: “'n Swaard van die Here en van Gideon!” Hulle het bly staan, elkeen waar hy was, rondom die kamp. Die hele kamp het rondgehardloop, geskreeu en op die vlug geslaan. Toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die Here in die hele kamp die een se swaard teen die ander gerig. Die krygsmag het gevlug tot by Bet-Sitta, in die rigting van Sereda, tot op die oewer van die Megolastroom by Tabbat. Die manskappe van Israel is uit Naftali, Aser en die hele Manasse opgeroep. Hulle het die Midianiete agternagesit. Gideon het ook nog boodskappers rondgestuur in die hele berggebied van Efraim om te sê: “Trek af om die Midianiete voor te keer. Beset hulle toegang na die water tot by Bet-Bara, die hele Jordaan. ” So is elke man van Efraim opgeroep, en hulle het die toegang na die water tot by Bet-Bara beset, die hele Jordaan. Hulle het die twee •aanvoerders van die Midianiete, Oreb en Seëb, gevang. Hulle het Oreb doodgemaak by die rots van Oreb, en Seëb het hulle doodgemaak by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete agtervolg, en die koppe van Oreb en Seëb het hulle na Gideon gebring van oorkant die Jordaan af. Die manne van Efraim het egter vir hom gesê: “Wat het jy ons aangedoen, om ons nie op te roep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle het heftig teen hom uitgevaar. Hy het vir hulle gesê: “Wat het ek nou eintlik vermag in vergelyking met julle? Is Efraim se naoes nie beter as Abiëser se druiweoes nie? Dit is in julle hand wat God die •aanvoerders van Midian, Oreb en Seëb, gegee het. Wat kon ek vermag in vergelyking met julle?” Eers nadat hy hierdie woorde gesê het, het hulle gegriefdheid teenoor hom bedaar. Gideon het by die Jordaan aangekom, en hy en die driehonderd man wat by hom was, het oorgetrek. Hulle was uitgeput, maar het steeds voortgegaan met die agtervolging. Hy sê toe vir die mense van Sukkot: “Gee asseblief rondebrode vir die manskappe wat my volg, want hulle is uitgeput. Ek is besig om Sebag en Salmunna, die konings van die Midianiete, te agtervolg.” Maar die aanvoerders van Sukkot vra hom: “Is die handpalms van Sebag en Salmunna nou al in jou hand, dat ons vir jou leër brood moet gee?” Toe sê Gideon: “Dis waar, maar wanneer die Here vir Sebag en Salmunna in my hand gee, gaan ek julle liggame met woestyndorings en braambosse dors. ” Daarvandaan het hy opgegaan na Pniël en vir hulle dieselfde gesê. Maar die manne van Pniël het hom op dieselfde manier geantwoord as wat die manne van Sukkot geantwoord het. Hy het toe ook vir die manne van Pniël gesê: “Wanneer ek veilig terugkom, sal ek hierdie toring afbreek.” Sebag en Salmunna was in Karkor. Hulle leër was saam met hulle, ongeveer vyftienduisend. Dit was al wat oor was van die hele leër van die mense uit die ooste. Dié wat geval het, was egter honderd-en-twintigduisend, elkeen met 'n swaard gewapen. Gideon het toe opgetrek met die pad van die nomade, aan die oostekant van Nobag en Jogboha. Hy het die leër aangeval terwyl hulle houtgerus was. Toe Sebag en Salmunna vlug, het hy hulle agtervolg. Hy het die twee konings van die Midianiete, Sebag en Salmunna, gevang, en die hele leër is deur vrees oorweldig. Terwyl Gideon, seun van Joas, oor die Gereshoogte teruggekeer het van die geveg, het hy 'n jong man van die manne van Sukkot gevang. Hy het hom uitgevra, en die jong man het vir hom die name van die aanvoerders van Sukkot en sy oudstes neergeskryf – sewe-en-sewentig man. Toe Gideon by die manne van Sukkot kom, sê hy vir hulle: “Kyk, hier is Sebag en Salmunna, oor wie julle my gespot het met die woorde, ‘Is die handpalms van Sebag en Salmunna nou al in jou hand, dat ons aan jou moeë manne brood moet gee?’ ” Hy neem toe die oudstes van die dorp, en ook woestyndorings en braambosse. Hy het die manne van Sukkot daarmee laat kennis maak. Die toring van Pniël het hy afgebreek en die manne van die dorp doodgemaak. Daarop het hy vir Sebag en Salmunna gevra: “Van waar was die manne wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle sê toe: “Hulle was soos u; elkeen met die voorkoms van 'n koningseun.” Toe sê Gideon: “Dit was my broers, seuns van my ma. So waar as die Here leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.” Daarop sê hy vir Jeter, sy eersgeborene: “Staan op; maak hulle dood!” Die jong man het egter nie sy swaard getrek nie, want hy was bang – hy was immers nog maar 'n seun. Sebag en Salmunna sê toe: “Staan jý op en val ons aan, want iemand se krag wys of hy 'n man is. ” Gideon staan toe op en maak Sebag en Salmunna dood. Hy het die halfmaantjies gevat wat aan die nekke van hulle kamele was. Die manne van Israel het toe vir Gideon gesê: “Heers oor ons, u sowel as u seun en kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.” Maar Gideon het hulle geantwoord: “Dit is nie ek wat oor julle sal heers nie, en my seun sal ook nie oor julle heers nie. Die Here alleen heers oor julle. ” Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle 'n versoek rig: Gee elkeen vir my 'n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei 'n oorkleed oop. Elkeen het 'n ring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was. Daarmee het Gideon 'n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis 'n valstrik geword. So het die Midianiete die knie gebuig voor die Israeliete. Hulle kon nie weer hulle koppe oplig nie. Die land het veertig jaar lank rus gehad in Gideon se leeftyd. Jerubbaäl, seun van Joas, het in sy eie huis gaan woon. Gideon het sewentig seuns gehad wat hy verwek het, want hy het baie vroue gehad. Ook sy byvrou wat in Sigem was, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy het hom Abimeleg genoem. Gideon, seun van Joas, het op 'n hoë ouderdom gesterf. Hy is in die graf van Joas, sy vader, begrawe in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Die Israeliete het nie meer gedink aan die Here hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie. Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie. Abimeleg, seun van Jerubbaäl, het na Sigem gegaan, na sy moeder se broers toe, en met hulle en die hele familiegroep aan sy moeder se kant, gepraat. Hy het gesê: “Sê tog ten aanhore van al die burgers van Sigem, ‘Wat is vir julle beter, dat sewentig man, al die seuns van Jerubbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En onthou dat ek julle eie bloedfamilie is.’ ” Toe sy moeder se broers dit alles namens hom gesê het ten aanhore van al die burgers van Sigem, het hulle Abimeleg ondersteun, want hulle het gesê: “Hy is ons broer.” Hulle gee toe vir hom sewentig sikkel silwer uit die tempel van Baäl-Berit. Daarmee het Abimeleg vir hom ongedissiplineerde, roekelose manne gehuur wat sy volgelinge geword het. Hy het na sy vader se huis, na Ofra, gegaan en sy broers, die seuns van Jerubbaäl, vermoor – sewentig man op een klip. Maar Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. Al die burgers van Sigem en Bet-Millo het byeengekom; hulle het gegaan en Abimeleg koning gemaak by die akkerboom langs die gedenkteken wat in Sigem is. Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerisim gaan staan en met 'n harde stem uitgeroep: “Luister na my, burgers van Sigem – dan sal God julle verhoor: “ Die bome het eenmaal gegaan om 'n koning oor hulle te salf. “Hulle sê toe vir die olyfboom, ‘Wees koning oor ons!’ “Maar die olyfboom sê vir hulle, ‘Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die vyeboom, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die vyeboom sê vir hulle, ‘Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die wingerdstok, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die wingerdstok sê vir hulle, ‘Moet ek my •nuwe wyn prysgee wat gode en mense verheug, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Toe sê die steekdoring vir die bome, ‘As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.’ “Daarom, as julle met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het toe julle Abimeleg koning gemaak het, as julle goed gedoen het aan Jerubbaäl en sy huis, as julle teenoor hom opgetree het volgens wat hy verdien, julle vir wie my pa geveg en sy lewe op die spel geplaas het toe hy julle uit die hand van die Midianiete gered het, julle wat vandag opgestaan het teen die huis van my pa, en sy seuns vermoor het – sewentig man op een klip – en Abimeleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is; as julle vandag met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het teenoor Jerubbaäl en sy huis, mag julle vreugde ervaar van Abimeleg en mag hy ook vreugde ervaar van julle. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit Abimeleg en die burgers van Sigem en Bet-Millo verteer. En vuur sal uitgaan vanuit die burgers van Sigem en Bet-Millo en Abimeleg verteer.” Jotam het toe op die vlug geslaan, gemaak dat hy wegkom. Hy het na Beër gegaan en daar gebly, weg van sy broer Abimeleg. Abimeleg het drie jaar lank oor Israel geheers. Maar toe beskik God 'n gees van onmin tussen Abimeleg en die burgers van Sigem. Die burgers van Sigem het ontrou geword aan Abimeleg, sodat die geweld teen die sewentig seuns van Jerubbaäl nie agterweë sou bly nie, en ook die bloedskuld, sodat dit sou neerkom op Abimeleg, hulle broer wat hulle vermoor het, en op die burgers van Sigem, wat sy hande sterk gemaak het om sy broers te vermoor. Die burgers van Sigem het bo in die berge struikrowers teen hom opgestel, en hulle het almal wat by hulle verbygekom het, op die pad beroof. Abimeleg is daaroor ingelig. Gaäl, seun van Ebed, en sy broers het daar opgedaag op pad deur Sigem. Die burgers van Sigem het hulle vertroue in hom gestel. Hulle het daarna uitgegaan na die lande, hulle wingerde afgeoes, die druiwe uitgetrap en oesfees gehou. Hulle het in die tempel van hulle god ingegaan, geëet en gedrink en Abimeleg verkleineer. Gaäl, seun van Ebed, het gesê: “Wie is Abimeleg, dat ons hom moet dien, en wie was Sigem? Is Abimeleg nie die seun van Jerubbaäl nie, en is Sebul nie sy dorpsbestuurder nie? Hulle het die manne van Gamor, die vader van Sigem, gedien. Waarom moet óns hom dien? As ek hierdie volk onder my hand gehad het, sou ek Abimeleg verwyder. Ek sou vir Abimeleg sê, ‘Maak maar jou leër groter en trek uit!’ ” Toe Sebul, die stadsbestuurder, hoor wat Gaäl, seun van Ebed, gesê het, was hy woedend. Hy stuur toe boodskappers na Abimeleg in Aruma om te laat weet: “Kyk, Gaäl, seun van Ebed, en sy broers het in Sigem aangekom, en hulle is besig om die stad teen u op te steek. Daarom, maak u in die nag gereed, u en die manskappe wat by u is, en stel 'n hinderlaag in die landerye op. Môreoggend vroeg, teen sonop, moet u 'n aanval loods op die stad. Hy en die manskappe by hom sal na u uitkom – doen dan wat u hand vind om te doen.” Abimeleg en al die manskappe wat saam met hom was, het toe in die nag gereedgemaak en met vier eenhede teen Sigem 'n hinderlaag opgestel. Toe Gaäl, seun van Ebed, uitkom en by die ingang van die stadspoort gaan staan, het Abimeleg en die manskappe by hom opgestaan uit hulle hinderlaag. Gaäl sien toe die manskappe en sê vir Sebul: “Kyk, daar is manskappe wat van die kruin van die berge afkom!” Maar Sebul sê vir hom: “Dit is skaduwees van die berge wat vir jou soos manne lyk.” Gaäl het steeds volgehou en gesê: “Kyk, daar kom manskappe af vanaf die middel van die land, en een eenheid kom uit die rigting van die akkerboom van die Waarsêers!” Daarop sê Sebul vir hom: “Waar is jou groot mond nou waarmee jy gesê het, ‘Wie is Abimeleg, dat ons hom moet dien’? Is dit nie die manskappe daardie wat jy so geminag het nie? Trek dan nou uit en veg teen hulle!” Gaäl het toe op die voorpunt van die burgers van Sigem uitgetrek en teen Abimeleg geveg. Abimeleg het hom agternagesit toe hy voor hom moes vlug, en baie gesneuweldes het tot by die stadspoort gelê. Abimeleg het na Aruma teruggekeer en Sebul het Gaäl en sy broers uitgedryf, sodat hulle nie meer in Sigem kon bly nie. Die volgende dag, toe die mense uitgaan na die landerye, is Abimeleg daaroor ingelig. Hy neem toe sy manskappe, verdeel hulle in drie eenhede en stel 'n hinderlaag op in die landerye. Toe hy sien die mense is inderdaad besig om uit die stad te gaan, het hy opgespring om teen hulle te veg en hulle neergevel. Abimeleg en die eenhede wat saam met hom was, het 'n aanval geloods en stelling ingeneem by die ingang van die stadspoort. Die ander twee eenhede het 'n aanval geloods op almal wat in die lande was en hulle neergevel. Abimeleg self het daardie hele dag teen die stad geveg. Hy het die stad ingeneem en die mense wat daarin was, om die lewe gebring. Hy het die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi. Toe al die burgers van Migdal-Sigem dit hoor, het hulle in die kelder van die tempel van El-Berit ingegaan. Abimeleg is ingelig dat al die burgers van Migdal-Sigem daar bymekaar was. Abimeleg het toe teen die berg Salmon uitgeklim, hy en al die manskappe wat by hom was. Hy het byle saamgevat en kap toe 'n boomtak af, tel dit op en sit dit op sy skouer. Daarop sê hy vir die manskappe wat saam met hom was: “Doen gou wat julle gesien het ek doen.” Al die manskappe het ook elkeen 'n tak afgekap en Abimeleg gevolg. Hulle het dit op die kelder gepak en die kelder oor die mense aan die brand gesteek. So het ook al die mense van Migdal-Sigem gesterf – ongeveer 'n duisend mans en vroue. Daarna het Abimeleg na Tebes gegaan. Hy het Tebes beleër en dit ingeneem. Daar was egter 'n versterkte toring in die middel van die stad en al die mans en vroue, al die burgers van die stad, het daarheen gevlug. Hulle het hulleself daar toegesluit en op die dak van die toring geklim. Abimeleg het tot by die toring gekom en dit aangeval. Maar toe hy nader gaan na die deur van die toring om dit af te brand, gooi een van die vroue 'n boonste maalklip op Abimeleg se kop en verbrysel sy skedel. Hy roep toe inderhaas die dienaar wat sy wapendraer was, en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood, anders sal hulle van my sê, ‘'n Vrou het hom om die lewe gebring.’ ” Sy dienaar het hom toe met die swaard deurboor en hy het gesterf. Toe die manne van Israel sien dat Abimeleg dood is, het hulle weggegaan, elkeen na sy woonplek. So het God die kwaad wat Abimeleg sy vader aangedoen het toe hy sy sewentig broers vermoor het, op hom laat terugkom. Al die kwaad van die manne van Sigem het God ook op hulle koppe laat terugkom. Die vloek van Jotam, die seun van Jerubbaäl, het oor hulle gekom. Ná Abimeleg het Tola, seun van Puwwa, seun van Dodo, 'n man uit Issaskar, opgestaan om Israel te verlos. Hy het by Samir, in die heuwelland van Efraim, gewoon. Hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig. Toe hy gesterf het, is hy in Samir begrawe. Ná hom het Jaïr, 'n man uit Gilead, opgestaan en Israel twee-en-twintig jaar lank gerig. Hy het dertig seuns gehad wat op dertig donkiehingste gery en dertig dorpe gehad het. Dit word vandag nog Gawwoot-Jaïr genoem, en is in die Gileadstreek geleë. Jaïr het gesterf, en is in Kamon begrawe. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en ook die gode van Aram, van Sidon, van Moab, van die Ammoniete en van die Filistyne. Hulle het die Here verlaat en Hom nie gedien nie. Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van die Filistyne en die Ammoniete. Hulle het in daardie jaar die Israeliete begin vernietig en verdruk. Vir agttien jaar het hulle dit gedoen aan al die Israeliete wat oorkant die Jordaan was, in die gebied van die Amoriete wat in Gilead is; en toe steek die Ammoniete die Jordaan oor om ook teen Juda en Benjamin en die huis van Efraim oorlog te maak. Vir Israel was dit 'n tyd van groot benoudheid. Die Israeliete het toe na die Here om hulp geroep: “Ons het teen U gesondig, want ons het ons God verlaat en die Baäls gedien.” Maar die Here het vir die Israeliete gesê: “Het Ek julle nie verlos van Egipte, van die Amoriete, die Ammoniete en die Filistyne nie? Die Sidoniërs, die Amalekiete en die Midianiete het julle verdruk, en toe julle na My om hulp roep, het Ek julle uit hulle hand verlos. Maar júlle het My verlaat en het ander gode gedien; daarom gaan Ek julle nie weer verlos nie. Gaan dan, roep om hulp na die gode wat julle gekies het; laat hulle julle verlos in julle tyd van nood.” Die Israeliete sê toe vir die Here: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat ook al goed is in u oë; maar red ons asseblief net vandag uit!” Hulle het toe die vreemde gode tussen hulle verwyder en die Here gedien; en Hy kon toe nie meer Israel se swaarkry verduur nie. Die Ammoniete is opgeroep en het kamp opgeslaan in Gilead, terwyl die Israeliete bymekaargekom en kamp opgeslaan het by Mispa. Die manskappe, die •aanvoerders van Gilead, sê toe vir mekaar: “Wie is die man wat die stryd teen die Ammoniete sal aanpak? Hy sal 'n leier wees vir al die inwoners van Gilead. ” 'n Man uit Gilead, Jefta, was 'n dapper kryger, maar hy was die seun van 'n prostituut. Gilead het Jefta verwek, maar toe Gilead se vrou vir hom seuns in die wêreld bring en die vrou se seuns grootword, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n erfdeel in ons familie kry nie, want jy is die seun van 'n ander vrou.” Jefta het toe van sy broers af padgegee en in die landstreek Tob gaan woon. Leeglêers het by Jefta aangesluit en saam met hom strooptogte onderneem. 'n Tyd daarna het die Ammoniete teen Israel oorlog gemaak. Terwyl die Ammoniete met Israel geveg het, het die oudstes van Gilead vir Jefta gaan haal in die landstreek Tob. Hulle sê toe vir Jefta: “Kom, wees ons •aanvoerder, sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: “Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?” Die oudstes van Gilead sê toe vir Jefta: “Dit is waar, maar nou kom ons terug na jou. Jy moet saam met ons gaan en teen die Ammoniete veg, dan sal jy vir ons, vir al die inwoners van Gilead, 'n leier wees.” Jefta sê toe vir die oudstes van Gilead: “As julle my laat terugkeer om teen die Ammoniete te veg, en die Here gee hulle aan my oor, sal ek julle leier wees?” Die oudstes van Gilead het Jefta geantwoord: “Die Here self hoor wat tussen ons gesê word. Ons sal sekerlik maak soos jy sê.” Jefta het toe saam met die oudstes van Gilead gegaan en die manskappe het hom as hulle leier en •aanvoerder aangestel. Jefta het al sy woorde ook in die teenwoordigheid van die Here in Mispa herhaal. Daarna het Jefta boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om te sê: “Wat het jy teen my dat jy kom oorlog maak teen my land?” Die koning van die Ammoniete het Jefta se boodskappers geantwoord: “Dit is omdat Israel my land afgeneem het toe hulle opgetrek het uit Egipte – van die Arnon af tot by die Jabbok en tot aan die Jordaan. Gee dit dan nou terug, ter wille van die vrede!” Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur. Hy het vir hom laat weet: “So sê Jefta, ‘Israel het nie die land van Moab en die land van die Ammoniete afgeneem nie; maar toe hulle uit Egipte opgetrek het, het Israel deur die woestyn gegaan tot by die Rietsee en by Kades aangekom. Israel het toe boodskappers na die koning van Edom gestuur om te vra: “Laat ons asseblief deur u gebied trek.” Maar die koning van Edom wou niks daarvan hoor nie. Hulle het die boodskap ook na die koning van Moab gestuur, maar ook hy wou nie. Israel het toe by Kades gebly. Daarna het hulle deur die woestyn gegaan en om die gebied van Edom en die gebied van Moab getrek. Hulle het oos gehou van die gebied van Moab, en kamp opgeslaan anderkant die Arnon. Hulle het nie in die grondgebied van Moab gekom nie, want die Arnon is die grens van Moab. Toe het Israel boodskappers gestuur na Sihon, koning van die Amoriete, die koning in Gesbon. Israel het vir hom gevra: “Laat ons asseblief deur u land trek na ons plek.” Sihon het Israel egter nie vertrou om deur sy grondgebied te trek nie. Sihon het al sy manskappe byeengebring, by Jahas kamp opgeslaan, en teen Israel geveg. Maar die Here, die God van Israel, het Sihon en al sy manskappe in die hand van Israel gegee, sodat hulle hulle verslaan het. Israel het toe die hele gebied van die Amoriete wat in daardie land gewoon het, in besit geneem. Hulle het die hele grondgebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok, van die woestyn af tot by die Jordaan. Dit is dus die Here, die God van Israel, wat die Amoriete uitgedryf het voor sy volk Israel. Wil jy hulle dan uitdryf? Is die gebied wat jou god Kemos vir jou as besitting gee, nie dit wat jy moet beset nie? En is die gebied van almal wat die Here ons God voor ons uit verdryf het, nie dit wat ons moet beset nie? Is jy dan nou soveel beter as Balak, seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis of ooit teen hulle geveg? Israel woon nou al driehonderd jaar lank in Gesbon en sy omliggende dorpies, in Aroër en sy omliggende dorpies en in al die dorpe wat langs die Arnon lê. Waarom het julle dit nie gedurende dié tyd van ons afgeneem nie? Ek is nie die een wat 'n misstap teenoor jou begaan het nie, maar jy is die een wat my 'n onreg aandoen deur teen my oorlog te voer. Die Here, die Regter, sal vandag tussen die Israeliete en die Ammoniete beslis.’ ” Die koning van die Ammoniete het egter nie ag geslaan op die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie. Die Gees van die Here het oor Jefta gekom en hy het deur Gilead en Manasse getrek. Hy het na Mispa in Gilead opgetrek, en van Mispa in Gilead het hy oorgetrek na die Ammoniete. Jefta het toe 'n gelofte aan die Here afgelê. Hy het gesê: “As U werklik die Ammoniete in my hand gee, dan sal die een wat uitkom, wat by die deur van my huis uitkom om my te ontmoet wanneer ek behoue van die Ammoniete af terugkeer, aan die Here behoort. Ek sal hom as •brandoffer offer.” Jefta het oorgetrek na die Ammoniete om teen hulle oorlog te voer, en die Here het hulle in sy hand gegee. Hy het hulle verslaan, hulle 'n baie groot nederlaag toegedien van Aroër af tot by Minnit, twintig dorpe, ja, tot by Abel-Keramim. En die Ammoniete moes die knie buig voor die Israeliete. Toe Jefta in Mispa by sy huis aankom – kyk, toe was dit sy dogter wat met tamboeryne en kringdanse uitkom om hom te ontmoet! Sy was die enigste kind; hy het nie enige ander seun of dogter gehad nie. Die oomblik toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: “Ag, my dogter, ek is heeltemal verpletter oor jou! Dat jy nou een van hulle moet wees wat my in die ellende dompel! Ek het met my mond 'n gelofte aan die Here afgelê en ek kan dit nie terugtrek nie.” Sy het hom geantwoord: “Pa, jy het met jou mond aan die Here 'n gelofte afgelê. Maak dan met my soos wat jy gesê het nadat die Here vir jou die geleentheid vir wraak op jou vyande, op die Ammoniete, gegee het.” Verder het sy vir haar vader gesê: “Laat my dit nog gegun word: Gee my vryheid vir twee maande, sodat ek in die berge kan ronddwaal. Ek wil gaan treur oor my maagdelikheid, ek en my vriendinne.” “Gaan,” het hy gesê, en haar weggestuur vir twee maande. Sy het gegaan, sy en haar vriendinne, en op die berge getreur oor haar maagdelikheid. Ná twee maande het sy teruggekeer na haar vader. Hy het sy gelofte nagekom en met haar gedoen wat hy beloof het. Sy het nooit met 'n man intiem verkeer nie. Dit het 'n vaste reël geword in Israel: Jaar vir jaar gaan die jongmeisies van Israel vir vier dae per jaar om die dogter van Jefta, die man uit Gilead, te gedenk. Die manne van Efraim is opgeroep. Hulle het oor die Jordaan getrek na Safon en vir Jefta gesê: “Waarom het jy oorgetrek om teen die Ammoniete oorlog te maak, maar jy het ons nie opgekommandeer om saam met jou te gaan nie? Ons gaan jou huis bo jou kop afbrand.” Maar Jefta het hulle geantwoord: “Ek en my mense was in 'n hewige stryd gewikkel met die Ammoniete. Ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand gered nie. Toe ek sien dat julle ons nie gaan verlos nie, het ek my lewe in my hand geneem en oorgetrek na die Ammoniete. Die Here het hulle in my hand gegee. Waarom trek julle dan vandag op teen my om teen my oorlog te voer?” Jefta het toe al die manne van Gilead byeengebring en hulle het teen Efraim oorlog gevoer. Die manne van Gilead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: “Julle is vlugtelinge uit Efraim; Gilead hoort by Efraim en by Manasse.” Gilead het die driwwe van die Jordaan na Efraim beset. Wanneer een van die vlugtelinge van Efraim dan sê, “Ek wil oorgaan,” sê die manne van Gilead vir hom: “Is jy 'n Efraimiet? ” As hy sê, “Nee,” dan sê hulle vir hom: “Sê bietjie ‘sjibbolet.’ ” En as hy sê “sibbolet,” en nie daarop bedag is om dit reg uit te spreek nie, dan het hulle hom gegryp en hom keelaf gesny by die driwwe van die Jordaan. In dié tyd het daar twee-en-veertigduisend man uit Efraim geval. Jefta het Israel ses jaar lank gerig. Jefta, die man uit Gilead, het gesterf, en is begrawe in sy dorp in Gilead. Ná Jefta het Ibsan, uit Betlehem, Israel gerig. Hy het dertig seuns en dertig dogters gehad. Die dogters het hy in die huwelik afgegee buite die familiegroep; vir sy seuns het hy meisies van buite die familiegroep ingebring. Hy het Israel sewe jaar lank gerig. Ibsan het gesterf en is in Betlehem begrawe. Ná hom het Elon, 'n man uit Sebulon, Israel gerig. Hy het Israel tien jaar lank gerig. Elon, die man uit Sebulon, het gesterf en is begrawe in Ajalon, op die grondgebied van Sebulon. Ná hom het Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, Israel gerig. Hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig donkiehingste gery het. Hy het Israel agt jaar lank gerig. Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, het gesterf en is begrawe in Piraton, in die grondgebied van Efraim, in die bergland van die Amalekiete. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het hulle toe veertig jaar lank oorgegee in die hand van die Filistyne. Daar was 'n sekere man uit Sora, uit 'n familiegroep van Dan; sy naam was Manoag. Sy vrou was onvrugbaar en kon nie kinders kry nie. Die •Engel van die Here het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Kyk, jy is onvrugbaar en kan nie kinders kry nie, maar jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, wees nou versigtig; moenie wyn of sterk drank drink nie en moenie enigiets •onreins eet nie. Ja, kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 'n Skeermes mag nie naby sy kop kom nie, want die seun sal 'n •nasireër van God wees van die moederskoot af. Hy sal begin om Israel te red uit die hand van die Filistyne.” Die vrou gaan toe na binne en sê vir haar man: “'n Man van God het na my gekom; en sy voorkoms was soos die voorkoms van die •Engel van God en was vreesaanjaend. Maar ek het hom nie gevra waarvandaan hy is nie; en wat sy naam is, het hy my nie vertel nie. Hy het vir my gesê, ‘Kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, moenie wyn of sterk drank drink nie, en moenie enigiets onreins eet nie, want die seun sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood.’ ” Manoag het toe by die Here gepleit en gesê: “Asseblief, my Heer! Die man van God wat U gestuur het, laat hy tog weer 'n keer na ons kom, sodat hy ons kan leer wat ons moet doen met die seun wat gebore gaan word.” God het geluister na die versoek van Manoag. Die Engel van God het weer na die vrou gekom terwyl sy in die veld gesit het; maar haar man, Manoag, was nie by haar nie. Die vrou hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar man. Sy het vir hom gesê: “Kyk, die man wat nou die dag na my gekom het, het aan my verskyn!” Daarop staan Manoag op en gaan agter sy vrou aan. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is u die man wat met die vrou gepraat het?” Hy het geantwoord: “Dit is ek.” Manoag sê toe: “Mag u woorde dan nou waar word! Watter reëls moet vir die seun geld, en wat is sy taak?” Die Engel van die Here het Manoag geantwoord: “Van alles wat Ek vir die vrou genoem het, moet sy haar weerhou. Enigiets wat van die wingerdstok af kom, mag sy nie eet nie. Wyn en sterk drank moet sy nie drink nie. Enigiets wat onrein is, moet sy nie eet nie. Alles wat Ek haar beveel, moet sy nakom.” Manoag sê toe vir die Engel van die Here: “Mag ons U ophou, sodat ons vir U 'n bokkie kan voorberei?” Maar die Engel van die Here sê vir Manoag: “As jy My ophou, sal Ek nie van jou kos eet nie; maar as jy 'n •brandoffer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.” Manoag het immers nie besef dat dit die Engel van die Here is nie. Toe vra Manoag vir die Engel van die Here: “Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord vervul word?” Die Engel van die Here het hom geantwoord: “Waarom vra jy nou my naam? Dit is iets onbegrypliks.” Manoag neem toe die bokkie en die •graanoffer, en offer dit vir die Here op 'n rots. Die Here het 'n wonder laat gebeur terwyl Manoag en sy vrou toekyk. Toe die vlam van die altaar af na die hemelruim opstyg, het die Engel van die Here in die vlam van die altaar opgegaan terwyl Manoag en sy vrou dit sien. Hulle het neergeval met hulle gesigte teen die grond. Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie. Toe besef Manoag dat dit die Engel van die Here was. Manoag het vir sy vrou gesê: “Ons sal beslis sterf, want ons het God gesien.” Maar sy vrou het vir hom gesê: “As die Here ons wou laat sterf, sou Hy nie uit ons hand 'n brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ons nie al hierdie dinge laat ervaar het nie, en Hy sou nie juis nou aan ons so iets bekend gemaak het nie.” Die vrou het toe 'n seun in die wêreld gebring en hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën. Die Gees van die Here het hom begin aanvuur by Magane-Dan, tussen Sora en Estaol. Simson het afgegaan na Timna. In Timna het hy 'n vrou onder die Filistynse meisies raakgesien. Hy gaan toe op, en vertel dit vir sy vader en moeder. Hy het gesê: “Ek het 'n vrou onder die Filistynse meisies in Timna raakgesien. Kry haar dan nou vir my as vrou. ” Sy vader en moeder sê toe vir hom: “Is daar onder die meisies van jou volksgenote, ja, onder my hele volk dan nie 'n vrou nie, dat jy moet gaan om 'n vrou te kry onder die onbesnede Filistyne? ” Maar Simson het vir sy vader gesê: “Kry háár vir my, want in my oë is sy die regte een.” Sy vader en moeder het egter nie geweet dat dit van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid teen die Filistyne vind. In dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. Simson, sy vader en moeder het toe afgegaan na Timna. Toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar skielik 'n jong leeu al brullend op hom af. Maar die Gees van die Here het van hom besit geneem, en hy het die leeu uitmekaar geskeur soos 'n mens 'n bokkie uitmekaar sou skeur. Daar was niks in sy hand nie. Hy het egter nie vir sy vader en moeder vertel wat hy gedoen het nie. Hy het toe afgegaan en met die vrou gepraat, en sy was die regte een in Simson se oë. Toe hy 'n ruk later teruggaan om met haar te trou, het hy afgedraai om na die oorskot van die leeu te kyk. En sowaar, daar was 'n swerm bye in die karkas van die leeu, en heuning. Hy het dit uitgekrap in sy hande en daarvan geloop en eet. Hy het na sy vader en moeder gegaan, vir hulle daarvan gegee en hulle het ook geëet. Maar hy het nie vir hulle vertel dat hy die heuning uit die karkas van die leeu gekrap het nie. Sy vader het na die vrou toe afgegaan. Simson het daar 'n •bruilofsfees gehou, want dit is wat die jong manne gedoen het. Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig van hulle vertrouelinge aangewys om by hom te bly. Simson sê toe vir hulle: “Ek wil julle graag 'n raaisel vra. As julle dit vir my binne die sewe dae van die bruilofsfees volledig kan verklaar, ja, dit kan oplos, sal ek vir julle dertig stelle onderklere en dertig stelle feesklere gee. Maar as julle dit nie vir my kan verklaar nie, moet julle vir my dertig stukke onderklere en dertig stelle feesklere gee.” Hulle sê toe vir hom: “Vra jou raaisel, sodat ons dit kan hoor.” Hy sê vir hulle: “Uit die eter het iets te ete gekom; uit 'n sterke het iets soets gekom.” Drie dae lank kon hulle die raaisel nie verklaar nie. Op die sewende dag sê hulle vir Simson se vrou: “Praat jou man om, sodat hy die raaisel vir ons verklaar, anders verbrand ons jou en jou familie. Is dit om ons besittings af te neem dat julle ons genooi het, of nie? ” Simson se vrou het toe by hom gekerm en gesê: “Jy haat my net; jy het my nie lief nie. Jy het vir die jong manne van my mense 'n raaisel gevra, maar vir my het jy dit nie verklaar nie.” Hy sê toe vir haar: “Kyk, vir my pa en ma het ek dit nie eers verklaar nie; moet ek dit dan vir jou verklaar?” Maar sy het die sewe dae wat hulle bruilofsfees geduur het, by hom bly kerm. Op die sewende dag het hy dit vir haar verklaar, omdat sy so by hom geneul het. Sy het toe die raaisel vir die jong manne van haar mense verklaar. Die manne van die stad het op die sewende dag, net voor sononder, vir Simson gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as 'n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie met my vers geploeg het nie, sou julle nie my raaisel kon oplos nie.” Die Gees van die Here het van hom besit geneem en hy het afgegaan na Askelon. Hy het dertig man van hulle doodgeslaan, hulle uitrustings geneem en die klere vir dié wat die raaisel verklaar het, gegee. Hy was woedend en het opgegaan na sy vader se huis. Simson se vrou het toe die vrou geword van sy vertroueling wat vir hom opgetree het as vriend van die bruidegom. 'n Ruk later, in die tyd van die koringoes, het Simson sy vrou gaan besoek met 'n bokkie. Hy het gedink: “Ek wil by my vrou ingaan, in die binnekamer.” Maar haar vader het hom toegang geweier. Haar vader het gesê: “Ek was vas oortuig dat jy haar heeltemal verwerp het; toe het ek haar vir jou vertroueling gegee. Is haar jonger suster nie mooier as sy nie? Laat sy maar joune word in haar plek.” Maar Simson het vir hulle gesê: “Hierdie keer is ek sonder blaam teenoor die Filistyne wanneer ek by hulle gaan skade aanrig.” Simson het gegaan en driehonderd jakkalse gevang. Hy het fakkels gevat, die jakkalse stert aan stert gedraai, en 'n fakkel in die middel tussen elke twee sterte vasgemaak. Toe steek hy die fakkels aan die brand en laat die jakkalse los in die ongeoeste graanlande van die Filistyne. Hy het alles, die gepakte gerwe, die ongeoeste graan, selfs die wingerde en olyfboorde aan die brand gesteek. Die Filistyne het gevra: “Wie het dit gedoen?” Die mense het gesê: “Simson, die skoonseun van die man in Timna, omdat hy sy vrou geneem en haar vir sy vertroueling gegee het.” Daarna het die Filistyne opgetrek en haar en haar vader verbrand. Simson het toe vir hulle gesê: “As dit is hoe julle optree, dan sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” Hy het hulle kort en klein geslaan – 'n groot slagting! Toe het hy afgegaan en in die rotsskeur by Etam gaan woon. Die Filistyne het opgetrek, in Juda kamp opgeslaan en hulle troepe in Legi ontplooi. Die manne van Juda het gevra: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” Hulle het geantwoord: “Om Simson gevange te neem, daarom het ons opgetrek, om aan hom te doen wat hy aan ons gedoen het.” Drieduisend man uit Juda het toe afgegaan na die rotsskeur by Etam. Hulle het vir Simson gesê: “Weet jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?” Maar hy het vir hulle gesê: “Wat hulle aan my gedoen het, het ek net so aan hulle terug gedoen.” Hulle sê toe vir hom: “Dit is om jou gevange te neem dat ons hierheen afgekom het; om jou in die hande van die Filistyne oor te gee.” Simson het vir hulle gesê: “Lê vir my 'n eed af dat julle my nie self sal aanval nie.” Hulle het hom geantwoord: “Nee, want ons gaan jou net goed vasbind en aan hulle oorhandig, maar ons sal jou beslis nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en hom uit die rotsskuiling opgevat na buite. Toe hy by Legi aankom, het die Filistyne hom juigend tegemoetgegaan. Maar die Gees van die Here het van hom besit geneem, en die toue wat om sy voorarms was, het geword soos vlas wat vlam vat – die koorde het van sy hande af gesmelt. Hy kry toe die vars kakebeen van 'n donkie, steek sy hand uit, gryp dit vas en vel daarmee 'n duisend man neer. Simson sê toe: “Met die kakebeen van 'n donkie lê daar 'n hoop, twee hope. Met die kakebeen van 'n donkie het ek duisend man verslaan.” Toe hy klaar gepraat het, gooi hy die kakebeen neer en noem daardie plek Ramat-Legi. Hy was baie dors en het na die Here geroep. Hy het gesê: “Dit is U wat deur die hand van u dienskneg hierdie groot oorwinning bewerk het. Moet ek dan nou van die dors sterf, en in die hand van die onbesnedenes val?” Daarop het God die hol plek wat by Legi is, oopgekloof en daar het water uitgekom. Simson het gedrink, sy asem teruggekry en weer nuwe lewe gehad. Daarom noem hulle dit En-Hakkore, wat in Legi is; dit is vandag nog so. Hy het Israel in die tyd van die Filistyne twintig jaar lank gerig. Simson het na Gasa gegaan. Hy het daar 'n prostituut gesien en by haar ingegaan. Aan die mense van Gasa is berig: “Simson het hierheen gekom.” Hulle het die stad omsingel en hom die hele nag by die stadspoort ingewag. Hulle was die hele nag stil, en het gesê: “Teen dagbreek maak ons hom dood.” Simson het egter tot in die middel van die nag bly lê. Hy het in die middel van die nag opgestaan, die deure van die stadspoort en ook die twee kosyne beetgepak en dit saam met die sluitbalk uitgeruk. Hy het dit op sy skouers gesit en dit opgedra na die kruin van die berg wat teenoor Hebron lê. 'n Ruk daarna het hy verlief geraak op 'n vrou in die Sorekdal; haar naam was Delila. Die regeerders van die Filistyne het na haar toe opgegaan en vir haar gesê: “Praat hom om en vind uit waarin sy groot krag lê, en hoe ons hom kan oorweldig en vasbind om hom weerloos te laat. Elkeen van ons sal vir jou eenduisend eenhonderd sikkel silwer gee.” Delila sê toe vir Simson: “Vertel asseblief vir my waarin jou groot krag lê, en hoe jy vasgebind kan word om jou weerloos te laat.” Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.” Die regeerders van die Filistyne het sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog was nie, vir haar gestuur. Sy het hom daarmee vasgebind. Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer op haar wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die boogsnare uitmekaar geruk soos vlasdraadjies breek wanneer dit vuur ruik, en dit het nie bekend geword waarin sy krag lê nie. Toe sê Delila vir Simson: “Kyk, jy het my vir die gek gehou; jy het vir my leuens vertel. Vertel nou asseblief vir my waarmee jy vasgebind kan word.” Hy het haar geantwoord: “As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee nog geen werk gedoen is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.” Delila het toe nuwe toue geneem en hom daarmee vasgebind. Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die toue van sy voorarms af gebreek soos 'n garingdraad. Delila sê toe vir Simson: “Tot nou toe het jy my vir die gek gehou en vir my leuens vertel. Vertel my waarmee jy vasgebind kan word.” Hy het vir haar gesê: “As jy die sewe vlegsels op my kop in die skering van die weefraam inweef.” Sy het dit met die pen vasgeslaan en vir hom gesê: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Hy het uit sy slaap wakker geskrik en die pen van die weefspoel saam met die skering uitgeruk. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê, ‘Ek het jou lief,’ maar jou hart is nie by my nie? Dit is die derde keer dat jy my vir die gek gehou het en nie vir my vertel het waarin jou groot krag lê nie.” En omdat sy die hele tyd met haar versoeke by hom geneul het en hom lastig geval het, het hy so ongeduldig geraak dat hy kon sterf. Hy het toe sy hele hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “'n Skeermes het nog nooit naby my kop gekom nie, want ek is van die moederskoot af 'n •nasireër van God. As ek geskeer word, sal my krag van my wyk. Ek sal swak word en soos enige ander mens wees.” Delila het gesien dat hy sy hele hart vir haar oopgemaak het. Sy het die regeerders van die Filistyne laat roep en gesê: “Kom hierdie keer hierheen op, want hy het vir my sy hele hart oopgemaak.” Die regeerders van die Filistyne het na haar opgegaan met die silwer by hulle. Sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak, iemand geroep en die sewe vlegsels op sy kop afgeskeer. So het sy begin om hom weerloos te maak. Sy krag het van hom gewyk. Toe sy sê, “Die Filistyne is op jou, Simson!” het hy uit sy slaap wakker geskrik en gedink: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Hy het egter nie besef dat die Here van hom gewyk het nie. Toe gryp die Filistyne hom en steek sy oë uit. Hulle het hom na Gasa afgeneem en hom met bronskettings geboei. Hy moes toe maalwerk doen in die gevangenis. Die hare op sy kop het egter weer begin groei nadat dit afgeskeer is. Die regeerders van die Filistyne het byeengekom om 'n groot offer aan Dagon, hulle god, te bring en om aan hulle blydskap uiting te gee. Hulle het gesê: “Ons god het Simson, ons vyand, in ons hand gegee.” Toe die volk hom sien, het hulle hulle god geloof. “Want,” het hulle gesê, “ons god het ons vyand in ons hand gegee – die verwoester van ons land, wat ons gesneuweldes vermeerder het.” Toe hulle harte vrolik geraak het, sê hulle: “Roep vir Simson, dat hy ons kan vermaak.” Hulle roep Simson toe uit die gevangenis, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. Simson sê toe vir die jong man wat hom aan die hand gelei het: “Los my, sodat ek die pilare waarop die tempel rus, kan voel en daarteen kan leun.” Die tempel was vol mans en vroue. Al die regeerders van die Filistyne was daar, en op die dak was ongeveer drieduisend mans en vroue wat na Simson se vermakery gekyk het. Toe roep Simson na die Here en sê: “ Here, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.” Simson vat toe die twee middelste pilare vas waarop die tempel rus, en leun teen hulle aan, met die een aan sy regterkant en die ander aan sy linkerkant. Daarop sê Simson: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Toe beur hy met alle mag. Die tempel het ingestort op die heersers en al die mense wat daarin was. Die dooies wat hy met sy sterwe omgebring het, was meer as dié wat hy in sy lewe omgebring het. Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom weggedra. Hulle het hom terug opgeneem en hom begrawe tussen Sora en Estaol in die graf van Manoag, sy vader. Simson het Israel twintig jaar lank gerig. Daar was 'n man uit die heuwelland van Efraim. Sy naam was Miga. Hy het vir sy moeder gesê: “Daardie eenduisend eenhonderd sikkel silwer wat van ma gesteel is, en waaroor ma 'n vloek uitgespreek het, wat ma ook ten aanhore van my herhaal het – kyk, die silwer is hier by my. Dit is ek wat dit gevat het.” Sy moeder het gesê: “Geseënd is my seun, deur die Here. ” Hy het toe die eenduisend eenhonderd sikkel silwer teruggegee vir sy moeder, maar sy moeder het gesê: “Ek wy die silwer volledig aan die Here. Dit is uit my hand vir my seun, om daarvan 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld te maak. Ek gee dit dan nou weer vir jou.” Maar hy het die silwer weer vir sy moeder teruggegee, en sy moeder het tweehonderd sikkel silwer geneem en dit vir 'n silwersmid gegee. Hy het 'n gesnede beeld, 'n gegote beeld, daarvan gemaak, en dit was toe in Miga se huis. Hierdie man, Miga, het 'n heiligdom gehad. Hy het 'n efod en huisgode gemaak en een van sy seuns gewy, en dié het vir hom as priester opgetree. In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë. Daar was 'n jong man uit Betlehem in Juda, van 'n familiegroep in Juda, maar hy was 'n Leviet en het daar tydelike verblyf gehad. Hierdie man het uit die dorp gegaan, uit Betlehem in Juda, om tydelike verblyf te kry, waar hy dit ook al kon vind. Terwyl hy op pad was, kom hy toe in die heuwelland van Efraim by Miga se huis aan. Miga het hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Hy het hom geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda, en ek is op reis om tydelike verblyf te kry, waar ek dit ook al kan vind.” Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n vader en 'n priester. Ek sal vir jou tien sikkel silwer in 'n jaar gee, asook klere en jou lewensonderhoud.” Die Leviet het daarmee akkoord gegaan. Toe het die Leviet besluit om by die man te bly. Die jong man was vir die man soos een van sy eie seuns. Miga het die Leviet gewy en die jong man het vir hom 'n priester geword en in Miga se huis gebly. Miga het gesê: “Nou weet ek dat die Here vir my goed sal wees, omdat die Leviet vir my 'n priester geword het.” In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie. En in daardie tyd was die stam van Dan op soek na 'n erfdeel vir hulle om hulle te vestig. Want tot op daardie dag het nog geen plek tussen die stamme van Israel as erfdeel aan hulle toegeval nie. Toe stuur die nakomelinge van Dan uit al die manne wat hulle het, vyf manne uit hulle familiegroep, onverskrokke manne, vanaf Sora en Estaol, om die land te verken en deur te kyk. Hulle het vir die manne gesê: “Gaan kyk die land deur!” Hulle het toe in die heuwelland van Efraim ingegaan tot by die huis van Miga en daar oornag. Toe hulle naby Miga se huis was, het hulle die stem van die jong man, die Leviet, herken, en toe het hulle daarheen afgedraai. Hulle het hom gevra: “Wie het jou hierheen laat kom? Wat doen jy op hierdie plek? Watter belang het jy hier?” Hy sê toe vir hulle: “Miga het dit en dat vir my gedoen; en hy het my gehuur en ek het vir hom 'n priester geword. ” Daarop vra hulle hom: “Raadpleeg God asseblief, sodat ons kan weet of die reis waarop ons nou is, voorspoedig sal afloop.” Die priester het vir hulle gesê: “Gaan in vrede! Die pad waarop julle gaan, is voor die Here. ” Die vyf manne het verder gegaan en by Lajis aangekom. Hulle merk toe dat die mense wat daar is, rustig woon, soos dit die gewoonte van die Sidoniërs was – onverstoord en rustig, met niks in die land wat skade aanrig of wat welvaart bedreig nie. Hulle was ver van die mense van Sidon en het niks met enigiemand te doen gehad nie. Toe die vyf manne by hulle volksgenote in Sora en Estaol aankom, vra dié vir hulle: “Hoe het dit gegaan?” Hulle antwoord: “Maak gereed, laat ons optrek teen hulle! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed. Weifel julle nog? Moenie aarsel om te gaan, om die land in besit te gaan neem nie! Wanneer julle die gebied binnegaan, sal julle aankom by 'n rustige volk en 'n gebied wat na alle kante wyd uitstrek. Ja, God gee dit in julle hand – 'n plek waar daar niks kortkom van enigiets wat in die land is nie. ” Hulle het toe daarvandaan weggetrek, uit Sora en Estaol, seshonderd manne uit die familiegroep van Dan, met hulle wapens aangegord. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom noem hulle daardie plek Magane-Dan; dit is vandag nog so. Kyk, dit lê wes van Kirjat-Jearim. Daarvandaan het hulle die grens oorgesteek na die heuwelland van Efraim en by Miga se huis aangekom. Die vyf manne wat gegaan het om die gebied by Lajis te verken, het toe aan die woord gekom en vir hulle volksgenote gesê: “Weet julle dat daar in hierdie geboue 'n efod, huisgode, 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld is? Julle weet dan nou wat julle moet doen.” Hulle het toe daarheen afgedraai en by die woonplek van die jong man, die Leviet in Miga se huishouding, aangekom en hom gegroet. Die seshonderd manne uit die nakomelinge van Dan, met hulle wapens aangegord, het stelling ingeneem by die toegangspoort. Die vyf manne wat die land gaan verken het, het opgegaan, daar ingekom en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat. Die priester het by die ingang van die poort by die seshonderd gewapende manne bly staan, terwyl hulle by Miga se huis ingegaan en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat het. Die priester vra toe vir hulle: “Wat doen julle?” Hulle het vir hom gesê: “Bly stil! Sit jou hand voor jou mond en gaan saam met ons. Wees vir ons 'n vader en 'n priester. Is dit vir jou beter om 'n priester te wees vir die huishouding van een man, of om priester te wees vir 'n stam en familiegroep in Israel?” Dit het die priester se hart bly gemaak. Hy het die efod, die huisgode en die gesnede beeld geneem en by die manskappe aangesluit. Hulle het toe omgedraai en verder gegaan. Hulle het die afhanklikes, die vee en die waardevolle goedere aan die voorpunt geplaas. Hulle was al 'n hele ent weg van Miga se huis af, toe die manne wat naby Miga se huis woon, opgeroep is. Hulle het die nakomelinge van Dan ingehaal en na hulle geroep. Die nakomelinge van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy jou mense opgeroep het?” Hy het geantwoord: “My gode wat ek gemaak het, het julle gevat, ook nog my priester, en weggegaan. Wat bly vir my oor? Hoe kan julle dan vir my sê, ‘Wat is dit met jou?’ ” Maar die nakomelinge van Dan het hom geantwoord: “Moenie op ons kom skreeu nie, anders val opvlieënde manne jou dalk aan en verloor jy jou lewe en dié van jou huismense.” Die nakomelinge van Dan het toe verder gegaan op hulle reis. Toe Miga sien dat hulle te sterk vir hom was, het hy omgedraai en teruggegaan na sy huis. Hulle het dit wat Miga gemaak het en die priester wat hy gehad het, saamgeneem en Lajis, 'n onverstoorde en rustige volk, oorval. Hulle het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en die dorp afgebrand. Niemand kon hulle red nie, want die dorp was ver van Sidon af en hulle het niks met enigiemand te doen gehad nie. Die dorp was in die vallei wat by Bet-Regob is. Hulle het die dorp herbou en daarin gewoon. Hulle het die dorp Dan genoem, na hulle voorvader Dan wat vir Israel gebore is. Voorheen was die naam van die dorp Lajis. Die nakomelinge van Dan het die godsbeeld toe vir hulle opgerig. Jonatan, seun van Gersom, seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van Dan tot die tyd toe die land se mense in ballingskap gegaan het. Hulle het Miga se gesnede beeld wat hy gemaak het, vir hulle in stand gehou, so lank as wat die huis van God in Silo was. In daardie tyd, toe daar geen koning in Israel was nie, het 'n Levitiese man, wat tydelike verblyf gehad het in die afgeleë dele van die heuwelland van Efraim, vir hom 'n byvrou uit Betlehem in Juda geneem. Maar sy byvrou het 'n afkeer van hom gekry en van hom af weggegaan, terug na haar vader se huis, na Betlehem in Juda. Sy was vier maande daar, toe maak haar man gereed en gaan agter haar aan om met haar te gaan mooipraat, om haar te laat terugkeer. Saam met hom was sy dienaar en ook twee donkies. Sy het hom in haar vader se huis ingeneem, en toe die jong vrou se vader hom sien, het hy hom met blydskap ontvang. Sy skoonvader, die vader van die jong vrou, het hom oorreed, en hy het drie dae by hom gebly. Hulle het geëet en gedrink en daar oornag. Op die vierde dag het hulle vroeg die oggend opgestaan en hy het gereedgemaak om te vertrek, maar die jong vrou se vader het vir sy skoonseun gesê: “Versterk jou innerlike met 'n stukkie brood; daarna kan jy gaan.” Hulle twee het saam gaan sit en geëet en gedrink. Toe sê die jong vrou se vader vir die man: “Besluit nou maar en bly oor. Wees vrolik!” Die man het gereedgemaak om te vertrek, maar sy skoonvader het by hom aangedring, en hy het weer daar oornag. Op die vyfde dag het hy vroeg opgestaan om te vertrek, maar die jong vrou se vader het vir hom gesê: “Versterk jou innerlike!” Hulle het toe getalm tot die namiddag, terwyl die twee manne saam eet. Toe die man opstaan om te gaan, hy en sy byvrou en sy dienaar, sê sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: “Kyk, die dag is verby; die son sak. Bly tog maar oor. Kyk, die dag daal; bly hier oor en wees vrolik. Julle kan môre vroeg opstaan vir julle reis, en dan kan jy na jou woonplek gaan.” Maar die man wou nie die nag oorbly nie. Hy het gereedgemaak en vertrek, en met sy twee opgesaalde donkies en sy byvrou by hom, gevorder tot teenoor Jebus, dit is Jerusalem. Omdat hulle naby Jebus was, en die dag reeds verby, sê die dienaar vir sy heer: “Kom ons draai af na hierdie stad van die Jebusiete en oornag daar.” Maar sy heer antwoord hom: “Ons kan nie na 'n stad van vreemdes afdraai, wat nie aan die Israeliete behoort nie. Laat ons deurdruk na Gibea. ” Hy sê toe vir sy dienaar: “Kom, laat ons by een van die plekke probeer uitkom, laat ons oornag by Gibea of Rama.” Hulle het toe daar verbygegaan en hulle reis voortgesit. Teen sononder was hulle digby Gibea, wat aan Benjamin behoort. Daar het hulle afgedraai om in Gibea te gaan oornag. Die man het ingegaan en op die stadsplein gaan sit, maar niemand het hulle in sy huis ontvang om te oornag nie. Net toe was daar 'n ou man, wat teen die aand van sy werk, van die landerye af, gekom het. Dié man was van die heuwelland van Efraim en hy het net tydelike verblyf gehad in Gibea – die mense van die plek was mos Benjaminiete. Toe hy opkyk en die man, die reisiger, op die stadsplein sien, vra die ou man: “Waar gaan jy heen en waar kom jy vandaan?” Hy sê toe vir hom: “Ons is van Betlehem in Juda af op pad na die afgeleë dele van die heuwelland van Efraim. Dit is waar ek vandaan kom. Ek het na Betlehem in Juda gegaan; nou is ek op pad na die huis van die Here. Maar daar is niemand wat my in sy huis wil ontvang nie. Ons het strooi, asook voer vir ons donkies, en ook brood en wyn vir my en u diensmeisie en vir die jong man, wat saam met ons, u dienaars, is. Ons kom nie enigiets kort nie.” Die ou man sê toe: “Vrede vir jou! Enigiets wat jy kortkom, is my verantwoordelikheid. Hier op die plein moet jy net nie oornag nie.” Hy neem hulle toe in sy huis in en gee vir die donkies voer. Hulle het hulle voete gewas en geëet en gedrink. Hulle was besig om vrolik te raak, toe daag manne van die dorp, 'n klomp booswigte, meteens daar op. Hulle omsingel toe die huis, hamer aan die deur en sê vir die ou man, die eienaar van die huis: “Bring die man uit wat by jou huis ingegaan het, sodat ons met hom gemeenskap kan hê!” Die man, die eienaar van die huis, gaan toe na hulle uit en sê vir hulle: “Nee, my broers, moet tog nie iets slegs doen nie! Noudat hierdie man in my huis ingekom het, moet julle tog nie hierdie gruweldaad pleeg nie. Hier is my dogter, 'n maagd, en sy byvrou; laat ek hulle eerder uitbring. Verkrag hulle en doen met hulle soos julle goeddink. Maar aan hierdie man mag julle nie hierdie gruweldaad pleeg nie.” Die manne wou egter nie na hom luister nie. Toe gryp die man sy byvrou en stoot haar na buite uit, na hulle toe. Hulle het haar verkrag en haar die hele nag lank, tot die oggend toe, mishandel. Toe die dag breek, het hulle haar gelos. Die vrou het teen die oggend gekom en by die ingang van die man se huis waar haar man was, inmekaargesak en bly lê totdat dit heeltemal lig was. Toe haar heer die oggend opstaan, die deure van die huis oopmaak en uitgaan om sy reis voort te sit, kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, by die ingang van die huis met haar hande op die drumpel! Hy sê toe vir haar: “Staan op; ons moet gaan!” Maar daar was geen reaksie nie. Hy laai haar toe op die donkie. Die man het toe gereedgemaak en na sy woonplek vertrek. Toe hy by sy huis aankom, vat hy 'n mes, pak sy byvrou beet en sny haar op, ledemaat vir ledemaat, in twaalf stukke, en stuur haar deur die hele gebied van Israel. Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur nie en is nog nooit gesien nie, van die dag toe die Israeliete uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe. Dink daaroor – maak 'n plan en praat!” Al die Israeliete het toe uitgetrek. Die volksvergadering het, van Dan tot Berseba en van die Gileadstreek af, soos een man saamgetrek voor die Here in Mispa. Die steunpilare van die hele volk, van al die stamme van Israel, het hulle plekke ingeneem in die strydmag van die volk van God. Dit was vierhonderdduisend man te voet, gewapen met swaarde. Die Benjaminiete het intussen gehoor dat die Israeliete opgetrek het na Mispa. Die Israeliete sê toe: “Vertel ons hoe hierdie bose daad plaasgevind het.” Die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, antwoord toe: “In Gibea wat aan Benjamin behoort, het ek aangekom, ek en my byvrou, om te oornag. Die burgers van Gibea het toe teen my opgestaan en in die nag die huis omsingel, oor my teenwoordigheid. Dit was vir my wat hulle wou doodmaak; my byvrou het hulle verkrag, en sy het gesterf. Ek het my byvrou gevat, haar in stukke opgesny en haar rondgestuur deur die hele gebied van die erfdeel van Israel, want hulle het 'n skandelike daad en 'n gruweldaad gepleeg in Israel. Kyk, julle is almal Israeliete – hier moet julle praat en raadgee.” Die hele volk het soos een man opgestaan en gesê: “Niemand van ons sal na sy tent gaan, en niemand van ons sal na sy huis afdraai nie. Dit is wat ons dan nou aan Gibea gaan doen: teen hom optrek, volgens die lot. Ons sal van al die stamme van Israel tien man per honderd neem, honderd per duisend, en duisend per tienduisend, om padkos te gaan haal vir die manskappe, sodat daar by hulle terugkeer met Gibea in Benjamin afgereken kan word na die volle maat van die gruweldaad wat hulle in Israel gepleeg het.” Elke man van Israel is byeengebring by die stad, soos een man was hulle verenig. Die stamme van Israel stuur toe manne uit onder die hele stam van Benjamin om vir hulle te sê: “Wat is hierdie bose daad wat onder julle plaasgevind het? Lewer dan nou die klomp booswigte uit wat in Gibea is, sodat ons hulle kan doodmaak en die kwaad uit Israel kan uitroei. ” Maar die mense van Benjamin wou nie luister na hulle broers, die Israeliete, nie. Die Benjaminiete het uit die dorpe saamgetrek by Gibea om uit te trek vir die geveg met die Israeliete. Die Benjaminiete wat uit die dorpe kom, is daardie dag gemonster – ses-en-twintigduisend man met swaarde gewapen. Dit was behalwe die inwoners van Gibea wat gemonster is – sewehonderd uitgesoekte manne. Onder al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat linkshandig was. Elkeen van hulle kon met 'n slingervel 'n klip op 'n haar gooi, sonder om te mis. Die manne van Israel is ook gemonster; sonder Benjamin was hulle vierhonderdduisend man, gewapen met swaarde, elkeen van hulle 'n krygsman. Hulle het gereedgemaak en na Bet-El opgeruk en God geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek vir die geveg met die Benjaminiete?” Die Here het gesê: “Juda eerste!” Die Israeliete het die oggend gereedgemaak en Gibea beleër. Die manne van Israel het uitgetrek vir die geveg met Benjamin. Die manne van Israel het hulle by Gibea in gevegslinies teenoor Benjamin opgestel. Maar die Benjaminiete het uit Gibea uitgetrek, en daardie dag in Israel twee-en-twintigduisend man neergevel. Die manskappe, die manne van Israel, het moed bymekaargeskraap en hulle weer in gevegslinies opgestel op die plek waar hulle dit op die eerste dag gedoen het. Die Israeliete het vooraf opgetrek en voor die Here getreur tot die aand toe. Hulle het die Here geraadpleeg: “Moet ons weer nader gaan vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer?” Die Here het toe geantwoord: “Trek teen hom op!” Die Israeliete het toe op die tweede dag nader beweeg na die Benjaminiete. Benjamin het hulle op die tweede dag uit Gibea tegemoetgetrek, en onder die Israeliete nog agttienduisend man neergevel. Al daardie manne was met swaarde gewapen. Al die Israeliete, ja, al die manskappe, het opgetrek en by Bet-El aangekom. Hulle het getreur en daar voor die Here gebly. Daardie dag het hulle tot die aand toe gevas en •brandoffers en •maaltydoffers voor die Here gebring. Daarna het die Israeliete die Here geraadpleeg. Die verbondsark van God was in dié tyd daar, en Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron, het in daardie tyd voor die Here diens gedoen. Hulle het gevra: “Moet ons weer 'n keer uittrek vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer, of moet ons ophou?” Die Here het geantwoord: “Trek op, want môre gee Ek hulle in julle hand.” Israel het toe aan alle kante hinderlae teen Gibea opgestel. Die Israeliete het op die derde dag teen die Benjaminiete opgetrek, en soos die vorige kere gevegslinies teen Gibea opgestel. Die Benjaminiete het uitgetrek, die manskappe tegemoet. So is hulle uit die stad gelok. Hulle het begin om, soos die vorige kere, onder die manskappe slagoffers te eis op die paaie, waarvan die een pad na Bet-El opgaan en die ander deur die landerye na Gibea lei – ongeveer dertig man van Israel. Die Benjaminiete het gedink: “Hulle word deur ons verslaan soos voorheen.” Maar die Israeliete het afgespreek: “Laat ons vlug en hulle uit die stad lok na die paaie.” Al die manne van Israel het hulle stellings verlaat en gevegslinies opgestel by Baäl-Tamar, terwyl Israel uit die hinderlae, uit hulle skuilplekke, storm, uit Maäre-Geba, en tot reg voor Gibea vorder – tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel. Die geveg was hewig, maar die Benjaminiete het nie besef dat 'n ramp hulle gaan tref nie. Die Here het Benjamin voor Israel uit verslaan. Die Israeliete het op daardie dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend eenhonderd man neergevel, almal van hulle gewapen met swaarde. Die Benjaminiete het gesien dat hulle verslaan word. Die manne van Israel het net terrein afgestaan aan Benjamin omdat hulle staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het. Die manne van die hinderlae het vinnig 'n aanval geloods op Gibea. Hulle het by mekaar aangesluit en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan. Die afspraak tussen die Israeliete en die manne in die hinderlae was: “Laat meer rook opstyg uit die stad!” Die manne van Israel het dus teruggeval in die geveg, en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel slagoffers te eis – ongeveer dertig man – want hulle het gedink: “Israel word sonder twyfel geheel en al deur ons verslaan, soos in die vorige geveg.” Daar het egter 'n rookwolk uit die stad begin opstyg, 'n kolom rook. En toe die Benjaminiete omdraai – kyk, die hele stad was besig om in vlamme op te gaan! Die manne van Israel het teruggedraai, en die manne van Benjamin was angsbevange, want hulle het gesien dat 'n ramp hulle getref het. Hulle het voor die manne van Israel teruggewyk in die rigting van die woestyn. Maar die geveg het hulle ingehaal, en die Israeliete wat uit die stede gekom het, het hulle in die middel vasgekeer en neergevel. Hulle het Benjamin van alle kante aangeval, hulle onvermoeid agtervolg, en hulle vertrap tot anderkant Gibea, tot aan die oostekant. Daar het van die Benjaminiete agttienduisend man geval, almal van hulle bekwame manne. Hulle het omgedraai, en na die woestyn, na die Rimmonrots, gevlug. Maar die Israeliete het vyfduisend man wat nog op die paaie was, afgemaai. In die hakkejag tot by Gidom het hulle tweeduisend man van hulle neergevel. Almal uit Benjamin wat op daardie dag geval het, was vyf-en-twintigduisend man, gewapen met swaarde, almal van hulle bekwame manne. Maar seshonderd man het omgedraai en na die woestyn gevlug, na die Rimmonrots. Hulle het vier maande lank by die Rimmonrots gebly. Die manne van Israel het teruggedraai na die Benjaminiete en hulle met die skerpte van die swaard verslaan, van stad en mens tot dier, ja, alles waarop afgekom is. Hulle het ook al die stede waarop hulle afgekom het, aan die brand gesteek. Die manne van Israel het in Mispa 'n eed afgelê: “Nie een van ons sal sy dogter vir iemand uit Benjamin as vrou gee nie.” Toe die volk by Bet-El aankom, het hulle daar tot die aand toe in God se teenwoordigheid gesit. Hulle het hardop en bitterlik gehuil. Hulle het gesê: “Waarom, Here, God van Israel, het dit in Israel gebeur, dat daar vandag in Israel een stam ontbreek?” Die volgende dag het die manskappe vroeg opgestaan en daar 'n altaar gebou en •brandoffers en •maaltydoffers gebring. Die Israeliete het gesê: “Wie is daar uit al die stamme van Israel wat nie opgetrek het na die saamtrek, na die Here nie?” Want hulle het 'n plegtige eed afgelê teen elkeen wat nie optrek na die Here in Mispa nie. Hulle het gesê: “So iemand moet beslis sterf.” Die Israeliete het Benjamin, hulle broer, jammer gekry en gesê: “Vandag is daar een stam uit Israel weggesny. Wat kan ons, wat vroue betref, doen vir hulle, vir dié wat oorgebly het? Ons het self by die Here 'n eed afgelê dat ons nie van ons dogters vir hulle as vroue sal gee nie.” Hulle sê toe: “Watter een van die stamme van Israel het nie opgetrek na die Here in Mispa nie?” Kyk, niemand uit Jabes in Gilead het na die kamp, na die saamtrek, gekom nie. Die manskappe is toe nagegaan, en sowaar, niemand van die inwoners van Jabes in Gilead was daar nie. Die volksvergadering stuur toe twaalfduisend man, van die kranigste manne, daarheen met die opdrag: “Gaan en verslaan die inwoners van Jabes in Gilead met die skerpte van die swaard, ook die vroue en kinders. Dit is wat julle moet doen: Elke man moet julle met die banvloek tref, en ook elke vrou wat met 'n man gemeenskap gehad het.” Hulle het toe onder die inwoners van Jabes in Gilead vierhonderd jongmeisies gevind, maagde, wat nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Hulle het hulle na die kamp by Silo, wat in die land Kanaän is, gebring. Die hele volksvergadering het toe boodskappers gestuur om met die Benjaminiete wat by die Rimmonrots was, te praat en met hulle vrede te sluit. Benjamin het toe in dié tyd teruggekeer, en die vroue wat hulle laat lewe het onder die vroue van Jabes in Gilead, is aan hulle as vroue gegee. Maar op dié wyse kon hulle nie genoeg vroue vir hulle kry nie. Die mense het Benjamin jammer gekry, omdat die Here 'n skeuring veroorsaak het tussen die stamme van Israel. Die oudstes van die volksvergadering het gesê: “Wat kan ons doen, wat vroue betref, vir dié wat oorgebly het? Want vroue is uit Benjamin uitgedelg.” Hulle sê toe: “Daar moet erfgename wees vir dié van Benjamin wat ontkom het. 'n Stam mag nie uit Israel uitgewis word nie. Ons kan egter nie self vir hulle uit ons dogters vroue gee nie; want die Israeliete het 'n eed afgelê met die woorde, ‘Vervloek is hy wat 'n vrou vir iemand uit Benjamin gee.’ ” Toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar die fees van die Here in Silo.” Dit lê noord van Bet-El, en suid van Lebona aan die oostekant van die pad wat van Bet-El af opgaan na Sigem. Hulle beveel toe die Benjaminiete: “Gaan kruip weg in die wingerde, en wees op die uitkyk. Die oomblik wanneer die meisies van Silo uitkom om kringdanse te doen, moet julle uit die wingerde kom en elkeen moet vir hom 'n vrou ontvoer uit die meisies van Silo. Dan moet julle na die land van Benjamin gaan. As hulle pa's of broers kom om by ons beswaar aan te teken, sal ons vir hulle sê, ‘Wees die Benjaminiete om ons onthalwe genadig, want nie elkeen van ons het gedurende die oorlog vir hom 'n vrou geneem nie. En julle het nie self die meisies aan hulle gegee nie. Net in só 'n geval sou julle skuldig wees.’ ” Die Benjaminiete het toe so gemaak. Hulle het, volgens hulle getal, vroue weggedra uit die dansers wat hulle gegryp het. Daarna het hulle weggegaan en teruggekeer na hulle erfdeel. Hulle het die stede herbou en daarin gewoon. In daardie tyd het die Israeliete daarvandaan uiteengegaan, elkeen na sy stam en sy familiegroep, en van daar af het elkeen van hulle weer na sy erfdeel gegaan. In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë. In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. 'n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly, toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man. Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die Here na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die Here julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. Mag die Here gee dat julle elkeen 'n tuiste vind in die huis van 'n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag 'n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek. ” Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. “Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het. Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” Sy het vir hulle gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Met 'n vol lewe is ek hier weg, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die Here my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?” So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die gebied van Moab. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes. Naomi het aan haar man se kant 'n familielid gehad, 'n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort. Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die Here is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die Here seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is 'n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!” Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in 'n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.” Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek 'n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na 'n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die Here, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. ” “U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!” Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou. Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!” Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer 'n efa gars. Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder. Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees! ” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die Here, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers. ” Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op 'n ander land lastig val nie.” Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly. Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou 'n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat u sê.” Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nader gegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê 'n vrou by sy voete! “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser. ” Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die Here, my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen, aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie. Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra, sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy 'n deugsame vrou is. Dit is nou wel waar dat ek 'n losser is, maar daar is ook 'n losser wat nader familie is as ek. Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, so waar as die Here leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê. Nog voordat 'n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in. Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.” Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier! ” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef. ” Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.” Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: 'n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek. Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.” Al die mense wat by die dorpspoort was en die oudstes sê toe: “Ons is getuies. Mag die Here gee dat die vrou wat in jou huis inkom soos Ragel en Lea sal wees, die twee wat die huis van Israel gebou het. Mag jy van krag tot krag gaan in Efrata en roem verwerf in Betlehem! Mag, uit die nageslag wat die Here vir jou uit hierdie jong vrou gee, jou huis wees soos dié van Peres wat Tamar vir Juda in die wêreld gebring het.” Boas het Rut by hom geneem en sy het sy vrou geword. Hy het by haar ingegaan, en die Here het haar swanger laat word. Sy het aan 'n seuntjie geboorte gegee. Die vroue het vir Naomi gesê: “Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder 'n losser gelaat nie. Mag dié losser beroemd wees in Israel. Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag. Jou skoondogter, wat jou liefhet, het hom in die wêreld gebring, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns. ” Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit en sy pleegmoeder geword. Die buurvroue het vir hom 'n naam gegee. Hulle het gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore”, en hom toe Obed genoem. Obed was die vader van Isai, en Isai die vader van Dawid. Hier volg die geslagsregister van Peres: Peres het Gesron verwek Gesron het Ram verwek Ram het Amminadab verwek Amminadab het Nagson verwek Nagson het Salmon verwek Salmon het Boas verwek Boas het Obed verwek Obed het Isai verwek Isai het Dawid verwek. Daar was 'n sekere man uit Ramatajim Sofim, in die heuwelland van Efraim. Sy naam was Elkana, seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf, uit Efraim. Hy het twee vroue gehad. Die eerste vrou se naam was Hanna en die tweede vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. Hierdie man het jaar ná jaar uit sy dorp opgegaan om te aanbid en vir die Here, Heerser oor alle magte, offers te bring in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters van die Here was. Wanneer Elkana die dag geoffer het, het hy vir sy vrou Peninna en vir al haar seuns en dogters dele van die offervleis gegee. Maar vir Hanna kon hy net een deel gee – al het hy haar liefgehad – want die Here het haar moederskoot gesluit. Haar mededinger het haar ook erg getreiter om haar seer te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het. So het dit jaar ná jaar gegaan. Elke keer as Hanna opgegaan het na die huis van die Here, het Peninna haar só getreiter dat sy gehuil het en nie wou eet nie. Elkana, haar man, het op 'n keer vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy? Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie? ” Nadat hulle daar in Silo klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die deurkosyn van die •tempel van die Here gesit. Sy was bitter ongelukkig en het tot die Here gebid terwyl sy onbedaarlik huil. Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “ Here, Heerser oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin wil raaksien en aan my sal dink en u slavin nie sal vergeet nie, en as U aan u slavin 'n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, Here, teruggee so lank hy leef. 'n Skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie. ” Terwyl Hanna so aanhou bid voor die Here, het Eli haar mond dopgehou. Maar Hanna self was besig om in haar hart te praat – net haar lippe het beweeg en haar stem was onhoorbaar. Eli het gedink sy is dronk. Eli sê toe vir haar: “Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!” Maar Hanna het geantwoord en gesê: “Nee, my heer! Ek is 'n vrou met 'n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die Here uitgestort. Moet my, u slavin, nie as 'n slegte vrou beskou nie, want dit is oor my kommer en ontsteltenis wat ek so lank gepraat het.” Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan. ” “Mag u slavin genade vind in u oë,” het sy gesê. Die vrou is toe daar weg. Sy het geëet, en haar gesig was nie meer droewig nie. Hulle het vroeg die volgende môre opgestaan, voor die Here in aanbidding gebuig, en weer na hulle huis in Rama gegaan. Elkana het met sy vrou Hanna gemeenskap gehad, en die Here het aan haar gedink. Met die draai van die jaar was Hanna swanger en het sy aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “van die Here het ek hom gevra”. Hierdie man, Elkana, en sy hele gesin het weer opgegaan om aan die Here die jaarlikse offer en ook sy gelofte-offer te bring. Hanna het nie saam opgegaan nie, maar het vir haar man gesê: “Nadat die seun gespeen is, sal ek hom bring, sodat hy voor die Here kan verskyn en vir altyd daar bly.” Haar man, Elkana, het vir haar gesê: “Maak soos jy goedvind. Bly maar totdat jy hom gespeen het. Mag die Here net sy woord gestand doen.” Die vrou het toe tuis gebly en haar seun gevoed totdat sy hom gespeen het. Nadat sy hom gespeen het, het sy met hom opgegaan, met 'n driejaaroud bul, 'n efa meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as 'n jong seuntjie na die huis van die Here in Silo geneem. Hulle het die bul geslag en die seuntjie na Eli geneem. Sy het gesê: “Asseblief, my heer! So seker as wat u leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. Vir hierdie seun het ek gebid, en die Here het my versoek, dit wat ek van Hom gevra het, toegestaan. Op my beurt staan ek hom nou aan die Here af. Solank as wat hy leef, is hy geleen aan die Here. ” Hulle het toe daar voor die Here in aanbidding gebuig. Hanna het gebid en gesê: “My hart juig in die Here, ek is sterk in die Here. Ek maak my mond wyd oop teenoor my vyande, want ek verheug my in u verlossing. “Niemand is heilig soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie. Julle moet nie verwaand bly praat nie, nie vermetele woorde oor julle lippe laat kom nie; want 'n God van kennis is die Here; deur Hom word dade geweeg. “Die boë van helde is verpletter, maar dié wat struikel, omgord hulleself met krag. Hulle wat versadig was, verhuur hulleself vir brood, maar hulle wat honger was, het oorvloed. Selfs die onvrugbare gee geboorte aan sewe, maar die vrou met baie seuns kwyn weg. “Die Here maak dood en Hy maak lewend; Hy laat na die •doderyk afdaal en Hy laat daaruit opkom. Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. Hy laat armes uit die stof opstaan, van die ashoop af hef Hy behoeftiges op om hulle by vooraanstaandes te laat sit en 'n ereplek hulle erfdeel te maak. Ja, aan die Here behoort die fondamente van die aarde, Hy het die wêreld daarop geplaas. “Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy, maar goddeloses – in duisternis word hulle vernietig. “Ja, dit is nie deur krag dat iemand seëvier nie. Die Here – wie teen Hom te staan kom, word verpletter; oor hulle laat Hy dit dreun uit die hemel. Die Here spreek reg tot by die uithoeke van die aarde. Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde. ” Daarna het Elkana na Rama gegaan, na sy huis toe. Die seuntjie was egter in diens van die Here onder toesig van Eli, die priester. Eli se seuns was deugniete. Hulle het die Here nie geken nie. Die reg van die priesters teenoor die volk was so dat, wanneer enigiemand 'n offer slag, die priester se handlanger met 'n drietandvurk in sy hand kom terwyl die vleis kook. Dan steek hy dit in die kastrol, pot, kookpot of erdepot. Alles wat die vurk optrek, neem die priester daarmee weg. So het hulle gewoonlik gemaak met die hele Israel wat daar in Silo aangekom het. Maar selfs voordat die vet verbrand is, het die priester se handlanger gekom en vir die man wat slag, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai. Hy sal nie gekookte vleis van jou aanvaar nie, net rou vleis.” As die man vir hom sê, “Laat hulle net eers die vet heeltemal verbrand, dan kan jy vir jou vat wat jy graag wil hê,” dan antwoord hy: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld!” Hierdie sonde van die jong manne was baie groot in die oë van die Here, want die manne het die offer aan die Here met minagting behandel. Samuel het voor die Here diens gedoen – 'n seuntjie wat 'n efod van linne aangehad het en 'n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die Here vir jou uit hierdie vrou 'n nageslag vestig in die plek van hom wat van die Here gevra is. ” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan. Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword. Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die Here te versprei, is nie goed nie. As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die Here is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die Here wou hulle om die lewe bring. Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense. 'n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou voorvader toe hulle in Egipte onderdanig was aan die huis van die farao nie? En het Ek hom nie vir My as priester gekies uit al die stamme van Israel om op te gaan na my altaar, om reukwerk te brand, en om die efod te dra in my teenwoordigheid nie? Ek het aan die familie van jou voorvader al die offergawes van die Israeliete gegee. Waarom vertrap julle my slagoffers en •graanoffers wat Ek vir my woning beveel het? Jy betoon meer eer aan jou seuns as aan My deur julleself vet te maak met die keur van al die graanoffers van Israel, my volk.’ “Daarom is die uitspraak van die Here, die God van Israel, ‘Ek het uitdruklik gesê: “Jou huis en die huis van jou vader sal vir altyd in my teenwoordigheid diens doen.” ’ Maar nou is die uitspraak van die Here, ‘Ek sal dit nooit toelaat nie! Want mense wat My eer, sal Ek eer; maar mense wat My minag, sal veragtelik wees. “ ‘ Kyk, die tyd kom dat Ek jou mag en die mag van jou vader se huis sal kortknip, sonder dat daar 'n bejaarde in jou huis sal wees. Jy sal met angs, met jaloesie, al die goeie wat Hy aan Israel doen, moet aanskou, terwyl daar nooit meer 'n bejaarde in jou huis sal wees nie. En as Ek iemand wat aan jou behoort van my altaar nie afsny nie, sal dit net wees om jou oë te laat verdof en jou lewenskrag te laat wegkwyn. En almal wat by jou huis gevoeg word, sal deur die swaard van mense sterf. En dit wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal reeds vir jou 'n teken wees: Op een dag sal hulle albei sterf. “ ‘Ek sal vir My 'n betroubare priester aanstel wat volgens my wil en wens sal optree. Ek sal vir hom 'n bestendige huis bou, sodat hy altyd voor my gesalfde sal diens doen. En elkeen wat oorbly in jou familie, sal kom om diep voor hom te buig vir 'n stukkie silwer en 'n ronde brood. En hulle sal sê: “Stel my asseblief aan by een van die priesterlike take, sodat ek 'n stukkie brood het om te eet.” ’ ” Die seun Samuel was in diens van die Here onder toesig van Eli. 'n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie. In daardie tyd het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het al begin swak word, hy kon nie meer sien nie. Die lamp van God was nog nie dood nie, en Samuel het al gaan lê in die •tempel van die Here waar die ark van God was. Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: “Hier is ek!” Hy hardloop toe na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê maar weer.” Hy het toe gaan lê. Die Here roep toe weer: “Samuel!” Samuel het opgestaan, na Eli gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar hy antwoord: “Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê maar weer.” Samuel het nog nie die Here geken nie, en die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie. Die Here roep toe weer na Samuel vir die derde maal. Hy staan toe op, gaan na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Eli besef toe dat dit die Here is wat na die seun roep. Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy sê, ‘Spreek, Here, want u dienskneg luister.’ ” Samuel gaan toe en gaan lê op sy plek. Die Here het gekom en gaan staan, en geroep soos die vorige kere: “Samuel! Samuel!” Samuel het geantwoord: “Spreek, want u dienskneg luister.” Die Here sê toe vir Samuel: “Kyk, Ek gaan iets doen in Israel wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. Op daardie dag sal Ek teenoor Eli alles vervul wat Ek oor sy huis aangekondig het, van die begin tot die einde. Ek wil aan hom bekend maak dat Ek vir altyd sy huis gaan oordeel oor die sondeskuld waarvan hy geweet het. Want terwyl sy seuns God gelaster het, het hy hulle nie tereggewys nie. Daarom lê Ek 'n eed af teenoor die huis van Eli: Die sondeskuld van Eli se huis sal vir ewig nie versoen kan word deur slagoffer en •graanoffer nie. ” Samuel het bly lê tot die oggend, en hy het die deure van die huis van die Here oopgemaak. Maar Samuel was bang om vir Eli van die verskyning te vertel. Eli roep toe na Samuel en sê: “Samuel, my seun!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê Eli: “Wat is dit wat Hy vir jou gesê het? Moet dit tog nie vir my wegsteek nie. Mag God jou swaar straf as jy enigiets vir my wegsteek van alles wat Hy vir jou gesê het.” Samuel het toe alles vir hom vertel. Hy het niks vir hom weggesteek nie. Daarop sê Eli: “Hy is die Here – wat goed is in sy oë, sal Hy doen.” Samuel het grootgeword. Die Here was met hom en het nie een van sy woorde onvervuld gelaat nie. Die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel betroubaar was as 'n profeet van die Here. Die Here het daarna weer in Silo verskyn; ja, die Here het Hom in Silo deur sy woord aan Samuel geopenbaar. En Samuel se boodskap was tot die hele Israel gerig. Israel het die Filistyne tegemoetgetrek vir die oorlog, en hulle het kamp opgeslaan by Eben-Haeser. Die Filistyne weer het kamp opgeslaan by Afek. Die Filistyne het hulle gevegslinies teen Israel opgestel, en toe die geveg uitbrei, is Israel voor die Filistyne uit verslaan. Hulle het op die gevegsterrein ongeveer vierduisend man neergevel. Toe die manskappe by die kamp aankom, vra die oudstes van Israel: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne uit verslaan? Ons moet die •verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, sodat Hy tussen ons kan inkom en ons verlos uit die greep van ons vyande. ” Die manskappe stuur toe mense na Silo, en hulle het die verbondsark van die Here, Heerser oor alle magte, wat op die gerubs troon, van daar af gebring. Die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, was daar by die verbondsark van God. Die oomblik toe die verbondsark van die Here by die kamp aankom, het die hele Israel so 'n harde strydkreet aangehef dat die aarde gedreun het. Die Filistyne het die geluid van die strydkreet gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie harde strydkreet in die kamp van die Hebreërs? ” Toe besef hulle dat die ark van die Here by die kamp aangekom het. Die Filistyne was bang, “want,” het hulle gesê, “'n god het by die kamp aangekom”. Hulle sê toe ook: “Wee ons, want so iets het nog nooit voorheen gebeur nie. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenare in die woestyn met allerhande plae getref het. Skep moed, gedra julle soos manne, Filistyne! Anders gaan julle die Hebreërs dien, soos hulle julle gedien het. Gedra julle soos manne en veg!” Die Filistyne het gaan veg en Israel is verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. Dit was 'n baie groot slagting: Dertigduisend voetsoldate van Israel het geval. Die ark van God is weggevoer, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, het gesterf. 'n Man van Benjamin het van die gevegslinies af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy kop. Toe hy daar aankom, sit Eli juis op 'n stoel langs die pad, in afwagting op nuus, want sy hart was aan die bewe oor die ark van God. Toe die man die stad binnegaan om die nuus bekend te maak, het die hele stad om hulp geroep. Eli het die uitroepe gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie geraas?” Die man het toe gou die nuus vir Eli gaan vertel. Eli was agt-en-negentig jaar oud en sy oë was al star, sodat hy nie meer kon sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek is die een wat van die gevegslinies af gekom het. Ek het pas van die gevegslinies af gevlug.” Eli vra toe: “Wat het dan gebeur, my seun?” Die boodskapper het geantwoord en gesê: “Israel het voor die Filistyne gevlug. Daar was nie net 'n groot slagting onder die manskappe nie, maar ook u twee seuns, Hofni en Pinehas, het gesneuwel, en die ark van God is weggevoer.” Die oomblik toe hy die ark van God noem, val Eli reg agteroor van sy stoel af langs die stadspoort. Sy nek het gebreek en hy het gesterf, want hy was 'n ou man en hy was swaar. Hy het Israel veertig jaar lank gerig. Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op die punt om geboorte te gee. Toe sy die tyding kry oor die ark van God wat weggevoer is, en haar skoonvader en man wat dood is, het sy ineengekrimp en geboorte gegee, want haar geboortepyne het haar oorweldig. Toe sy besig was om te sterf, het die vroue wat haar bystaan, gesê: “Moenie bang wees nie, want jy het 'n seun in die wêreld gebring!” Sy het egter nie daarop geantwoord of dit ter harte geneem nie. Sy het die seuntjie Ikabod genoem en, met verwysing na die wegvoering van die ark van God, en na haar skoonvader en man, gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel.” Sy het gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel,” omdat die ark van God weggevoer is. Toe die Filistyne die ark van God weggevoer het, het hulle dit van Eben-Haeser af na Asdod toe gebring. Die Filistyne het die ark van God geneem, dit in die tempel van Dagon ingebring en langs Dagon neergesit. Toe die mense van Asdod vroeg die volgende môre opstaan – daar lê Dagon met sy gesig teen die grond voor die ark van die Here! Hulle het Dagon geneem en hom op sy plek teruggesit. Maar toe hulle die oggend daarna vroeg opstaan – daar lê Dagon met sy gesig teen die grond voor die ark van die Here! Dagon se kop en sy twee hande lê toe afgekap op die drumpel. Net Dagon se lyf het van hom oorgebly. Daarom trap die priesters van Dagon, en almal wat die tempel van Dagon binnegaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie. Die hand van die Here was swaar op die mense van Asdod. Hy het paniek gesaai onder hulle, en Hy het hulle, dit is Asdod en sy omliggende gebied, getref met swelsels. Toe die manne van Asdod sien wat gebeur, sê hulle: “Die ark van die God van Israel kan nie by ons bly nie, want sy hand rus swaar op ons en op Dagon, ons god.” Hulle het al die Filistynse regeerders ontbied en by hulle byeengebring. Hulle vra toe: “Wat moet ons doen met die ark van die God van Israel?” Hulle antwoord was: “Die ark van die God van Israel moet na Gat verskuif word.” Hulle het toe die ark van die God van Israel verskuif. Maar nadat hulle dit verskuif het, was die hand van die Here teen die stad. Daar het baie groot paniek geheers. Hy het die mense van die stad getref, klein en groot, en swelsels het op hulle uitgebreek. Toe stuur hulle die ark van God na Ekron; maar die oomblik toe die ark van God by Ekron aankom, het die mense van Ekron uitgeskreeu: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons verskuif om ons en ons volk dood te maak!” Hulle het al die Filistynse regeerders ontbied, hulle byeengebring en vir hulle gesê: “Stuur die ark van die God van Israel weg, sodat dit na sy plek kan teruggaan en nie ons en ons volk doodmaak nie.” Daar het immers 'n doodspaniek in die hele stad geheers. Die hand van God was baie swaar daarop. Die mense wat nie dood is nie, is getref met swelsels; en die noodkreet van die stad het na die hemel gestyg. Toe die ark van die Here sewe maande in die Filistynse gebied was, het die Filistyne die priesters en waarsêers ontbied en gesê: “Wat moet ons met die ark van die Here maak? Maak aan ons bekend waarmee ons dit na sy plek toe moet terugstuur.” Hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sonder iets terugstuur nie, maar julle moet dit beslis met skadevergoeding vir die Here laat teruggaan. Dan sal julle gesond word en dit sal vir julle duidelik word waarom sy hand nie van julle wyk nie.” Die Filistyne vra toe: “Wat is die skadevergoeding wat ons vir Hom moet terugstuur?” Hulle antwoord was: “In ooreenstemming met die getal Filistynse heersers, vyf swelsels van goud en vyf muise van goud, want een en dieselfde plaag het julle almal en ook al julle regeerders getref. Maak dan nou afbeeldings van julle swelsels en van die muise wat julle land verniel en betoon daardeur eer aan die God van Israel. Miskien maak Hy dan sy hand ligter oor julle, julle gode en julle land. Waarom sou julle onversetlik wees soos die Egiptenare en die farao onversetlik was? Was dit nie toe die Here hulle vir die gek gehou het, dat hulle die Israeliete laat gaan het, en hulle getrek het nie? Kry dan nou 'n nuwe wa gereed, asook twee koeie in die melk wat nog nie onder die juk was nie. Span die koeie dan voor die wa in, maar keer hulle kalwers agter hulle weg huis toe. Neem dan die ark van die Here en plaas dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle vir die Here as skadevergoeding teruggee, moet julle langsaan in 'n saalsak neersit. Stuur die ark dan weg, laat dit gaan; maar hou dit dop: As dit met die pad na sy gebied opgaan, na Bet-Semes toe, is dit Hy wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. Indien nie, sal ons weet dat dit nie sy hand was wat ons getref het nie; dit het dan toevallig met ons gebeur.” Die manne het toe so gemaak. Hulle het twee koeie wat in die melk was, geneem en voor 'n wa ingespan, maar hulle kalwers is teruggehou by die huis. Hulle het die ark van die Here op die wa gesit, en ook die saalsak met die goue muise en die afbeeldings van hulle swelsels. Die koeie het met die pad langs reguit in die rigting van Bet-Semes geloop. Met die een hoofpad het hulle geloop, al bulkende, maar hulle het nie links of regs afgedraai nie, terwyl die Filistynse heersers agter hulle aan loop tot by die grens van Bet-Semes. Die mense van Bet-Semes was besig om die koringoes in die vallei in te samel. Toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien. Toe die wa aankom by die land van Josua, 'n man van Bet-Semes, het dit daar gaan staan. Daar was 'n groot klip, en hulle het die hout van die wa opgekap en die koeie as 'n •brandoffer aan die Here geoffer. Die Leviete het eers die ark van die Here afgelaai en daarmee saam die saalsak waarin die goue voorwerpe was. Hulle het dit by die groot klip neergesit, en die manne van Bet-Semes het brandoffers gebring. Hulle het daardie dag vir die Here offers geslag. Die vyf heersers van die Filistyne het dit gesien en dieselfde dag nog teruggegaan na Ekron. Dit was die goue swelsels wat die Filistyne as skadevergoeding aan die Here gestuur het: een vir Asdod, een vir Gasa, een vir Askelon, een vir Gat en een vir Ekron. Die goue muise stem ooreen met die getal van al die Filistynse stede wat aan die vyf heersers behoort, die versterkte stede saam met die nedersettings. As 'n getuienis is die groot klip waarop die ark van die Here tot rus gekom het, tot vandag toe nog daar in die land van Josua, die man van Bet-Semes. Maar die Here het van die inwoners van Bet-Semes getref, omdat hulle die ark van die Here bekyk het. Hy het sewentig man van die bevolking getref. Die volk het getreur, omdat die Here so 'n groot slagting onder die volk aangerig het. Die manne van Bet-Semes sê toe: “Wie kan voor hierdie heilige God, die Here, staande bly? Na wie toe kan die ark van ons af gaan?” Hulle stuur toe boodskappers na die inwoners van Kirjat-Jearim met die versoek: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom af hierheen en neem dit op na julle.” Die manne van Kirjat-Jearim het toe gekom. Hulle het met die ark van die Here opgegaan en dit na die huis van Abinadab op die heuwel geneem. Hulle het Eleasar, sy seun, gewy om die ark van die Here op te pas. Vanaf die dag dat die ark in Kirjat-Jearim 'n tuiste gevind het, het daar 'n lang tyd verloop – twintig jaar. Die hele huis van Israel wou toe weer die Here volg. Samuel het toe vir die hele huis van Israel gesê: “As julle met julle hele hart na die Here wil terugkeer, verwyder dan die vreemde gode uit julle midde, en ook die Astartes. Rig julle hart op die Here en dien Hom alleen, sodat Hy julle kan red uit die hand van die Filistyne.” Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien. Samuel sê toe: “Bring die hele Israel by Mispa byeen, dan sal ek vir julle tot die Here bid.” Hulle het by Mispa byeengekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Hulle het daardie dag gevas en daar bely: “Ons het teen die Here gesondig.” Samuel het die Israeliete by Mispa gerig. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete by Mispa byeengekom het, het die heersers van die Filistyne teen Israel opgetrek. Die Israeliete het dit gehoor en bang geword vir die Filistyne. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moet tog nie oor ons stilbly en ophou om tot die Here om hulp te roep nie, sodat Hy ons uit die hand van die Filistyne kan verlos.” Samuel het toe 'n suiplam geneem en dit as 'n volledige •brandoffer aan die Here gebring. Samuel het tot die Here om hulp geroep ter wille van Israel, en die Here het hom verhoor. Terwyl Samuel nog die brandoffer bring, het die Filistyne nader beweeg vir die geveg teen Israel. Maar die Here het op daardie dag harde donderslae laat dreun oor die Filistyne en hulle verwar. Hulle is toe voor Israel uit verslaan. Die manskappe van Israel het uit Mispa getrek en die Filistyne agtervolg en bly neervel, tot onderkant Bet-Kar. Toe het Samuel 'n klip geneem en dit tussen Mispa en Sen opgerig. Hy het dit Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” Die Filistyne is op hulle knieë gedwing en hulle het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die hand van die Here was teen die Filistyne so lank as wat Samuel geleef het. Die stede wat die Filistyne van Israel afgeneem het, van Ekron af tot by Gat, het weer teruggeval na Israel. Ook die omliggende gebiede het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. Daar was toe vrede tussen Israel en die Amoriete. Samuel het Israel gerig so lank as wat hy geleef het. Hy het van jaar tot jaar rondgegaan by Bet-El, Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig voordat hy teruggekeer het na Rama; want sy huis was daar. Daar het hy Israel gerig en daar het hy vir die Here 'n altaar gebou. Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. Sy eersgebore seun se naam was Joël en sy tweede seun se naam was Abia. Hulle was rigters in Berseba. Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai. Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons 'n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is. ” Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons 'n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die Here gebid. Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer. ” Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het. Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop. Hy sal hulle vir hom aanstel as •aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. Julle beste landerye, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee. Van julle graanoes en wingerdoes sal hy 'n tiende vat en vir sy paleisamptenare en dienaars gee. Julle slawe en slavinne, die keur van julle jong manne en donkies sal hy vat en vir sy eie werk gebruik. Van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat. Julle self sal sy slawe wees. Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die Here sal julle op daardie dag nie verhoor nie.” Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet 'n koning oor ons wees! Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.” Samuel het na al die woorde van die volk geluister en dit aan die Here voorgelê. Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle 'n koning aan.” Samuel het daarna vir die mense van Israel gesê: “Gaan elkeen dan nou na sy stad toe!” Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, 'n seun van Abiël, seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet, 'n vermoënde man. Hy het 'n seun gehad met die naam Saul, 'n mooi jong man. Onder die Israeliete was daar niemand aantrekliker as hy nie. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk. Donkiemerries van Kis, Saul se vader, het soek geraak. Kis het vir sy seun Saul gesê: “Neem een van die handlangers saam met jou, maak self gereed en gaan soek die donkiemerries.” Hulle het oor die heuwelland van Efraim gegaan, ook deur die Salisastreek, maar niks gekry nie. Toe het hulle deur die Saälimstreek gegaan, maar ook daar was niks. Hulle het deur die landstreek van Benjamin gegaan, maar niks gekry nie. Toe hulle in die Sufstreek kom, het Saul vir die handlanger wat by hom was, gesê: “Kom ons gaan terug, anders bekommer my pa hom nie meer oor die donkies nie, maar raak besorg oor ons.” Die handlanger antwoord hom toe: “Kyk, in hierdie dorp is daar 'n man van God, en dié man word hoog geag. Alles wat hy sê, gebeur werklik. Kom ons gaan nou daarheen. Miskien kan hy vir ons die pad aandui waarop ons moet gaan.” Saul sê toe vir sy handlanger: “Kyk, as ons gaan, wat bied ons vir die man aan? Want die brood in ons sakke is gedaan. Hier is ook geen geskenk om vir die man van God aan te bied nie. Wat het ons?” Die handlanger het Saul weer geantwoord en gesê: “Kyk, ek het nog 'n kwart sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man van God gee, sodat hy vir ons die pad kan aandui.” Vroeër het die mense in Israel so gesê wanneer hulle gaan om God te raadpleeg: “Kom, laat ons na die siener gaan.” Want die profeet van vandag is vroeër “siener” genoem. Saul sê toe vir sy handlanger: “Jou voorstel is goed. Kom ons gaan.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was. Terwyl hulle oploop na die dorp, teen die opdraand uit, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te skep. Hulle vra toe vir hulle: “Is die siener hier?” Die meisies het hulle geantwoord en gesê: “Hy is. Kyk, daar voor u! Maak nou gou! Want hy het juis vandag na die dorp gekom, omdat daar vandag vir die volk 'n •maaltydoffer op die •offerhoogte is. Sodra u die dorp binnegaan, sal u hom teëkom voordat hy na die offerhoogte opgaan om te eet; want die mense eet nie voordat hy kom nie, omdat hy die een is wat die offer moet seën. Eers daarna eet die genooides. Gaan dan op, want u sal hom nou daar aantref.” Hulle het toe na die dorp opgegaan. Terwyl hulle die dorp binnegaan, kom Samuel juis in hulle rigting uit om na die offerhoogte op te gaan. Die Here het dit 'n dag voor die koms van Saul aan Samuel bekend gemaak en gesê: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die landstreek van Benjamin na jou stuur. Jy moet hom salf as 'n leier oor my volk Israel, sodat hy my volk kan verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk raakgesien, ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Toe Samuel vir Saul sien, het die Here hom verseker: “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’ ” Saul het Samuel in die dorpspoort genader en gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis?” Daarop antwoord Samuel toe vir Saul en sê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend wegsien en oor alles wat op jou hart druk, vir jou duidelikheid gee. Wat die donkiemerries betref waarna jy vandag drie dae lank al op soek is: Moet jou nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al die kosbaarhede van Israel? Is dit nie aan jou en jou familie nie?” Saul het egter daarop gereageer en gesê: “Is ek nie maar net 'n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel, en is my familiegroep nie die kleinste van al die familiegroepe van die stam van Benjamin nie? Waarom sê u so iets vir my?” Samuel het toe Saul en sy handlanger geneem en hulle in die eetvertrek ingebring. Hy het aan hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was ongeveer dertig man. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die porsie vleis wat ek vir jou gegee het, en waarvan ek vir jou gesê het, ‘Hou dit by jou.’ ” Die kok het die skenkel en die vleis daaraan opgetel en dit voor Saul neergesit. Toe sê Samuel: “Kyk, wat uitgehou is, is voor jou neergesit. Eet dit, want dit is vir hierdie geleentheid vir jou gebêre, al vandat ek gesê het, ‘Ek nooi die volk uit.’ ” Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet. Hulle het daarna van die offerhoogte na die dorp afgegaan. Samuel het op die dak van sy huis met Saul gepraat. Hulle het vroeg opgestaan, en toe die dag breek, het Samuel na Saul op die dak geroep: “Staan op, sodat ek jou kan wegsien.” Saul het opgestaan en hulle twee, hy en Samuel, het saam na buite gegaan. Terwyl hulle besig was om langs die dorp af te gaan, het Samuel vir Saul gesê: “Sê vir die handlanger hy moet voor ons uit gaan; maar jy moet eers 'n bietjie wag, sodat ek jou die woord van God kan laat hoor.” Die handlanger het toe vooruit gegaan. Samuel het die fles met olie geneem en dit op Saul se kop uitgegiet. Hy het hom gesoen en vir hom gesê: “Is dit nie so dat die Here jou as leier oor sy erfdeel gesalf het nie? Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by die graf van Ragel, by Selsag, in die gebied van Benjamin. Hulle sal vir jou sê, ‘Die donkiemerries wat jy gaan soek het, is gevind. Kyk, jou pa het die saak van die donkiemerries al laat vaar. Hy is besorg oor julle en vra: “Wat moet ek doen oor my seun?” ’ “As jy daarvandaan verder gaan, sal jy by die akkerboom van Tabor kom. Daar sal drie mans wat opgaan na God in Bet-El, jou teëkom. Een dra drie bokkies, een dra drie rondebrode en een dra 'n kruik wyn. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en vir jou twee brode gee. Jy moet dit uit hulle hand aanvaar. “Daarna sal jy by Gibea van God uitkom, waar wagposte van die Filistyne is. Sodra jy daar die stad binnegaan, sal jy 'n groep profete raakloop wat afkom van die •offerhoogte af. Voor hulle word daar op harpe, tamboeryne, fluite en liere gespeel, terwyl hulle in geestesvervoering is. Die Gees van die Here sal jou oorweldig, en jy sal saam met hulle in geestesvervoering wees. Jy sal in 'n ander mens verander word. “Wanneer hierdie tekens vir jou vervul word, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou. Jy moet voor my uit na Gilgal toe afgaan. Kyk, ek sal na jou toe afkom om •brandoffers te offer en •maaltydoffers te slag. Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou aankom en jou te kenne gee wat jy moet doen. ” Net toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander. Al hierdie tekens is dieselfde dag nog vervul. Toe hulle daar in Gibea aankom – kyk, daar kom die groep profete hom tegemoet! Die Gees van God het hom oorweldig, en hy was tussen hulle in geestesvervoering. Toe almal wat hom voorheen geken het, sien dat hy sowaar saam met profete profeteer, het hulle vir mekaar gevra: “Wat is dit wat met die seun van Kis gebeur het? Is Saul ook onder die profete?” Iemand wat daar was, het gevra: “En wie is hulle vader? ” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?” Toe Saul uit sy geestesvervoering kom, het hy na die offerhoogte gegaan. Saul se oom het vir hom en sy handlanger gevra: “Waarheen het julle gegaan?” “Om die donkies te gaan soek,” het hy geantwoord, “en toe ons sien dat hulle nie daar is nie, het ons na Samuel gegaan.” Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat het Samuel vir julle gesê.” Saul het sy oom geantwoord: “Hy het ons maar net verseker dat die donkiemerries gevind is. ” Oor die saak van die koningskap waaroor Samuel gepraat het, het Saul egter niks vir hom gesê nie. Samuel het die volk opgeroep na die Here in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het.’ “Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel. ’ Neem dan nou plek in voor die Here volgens julle stamme en volgens julle afdelings.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam van Benjamin is aangewys. Hy het die stam van Benjamin volgens familiegroepe laat nader kom, en die familiegroep van Matri is aangewys. Toe is Saul, seun van Kis, aangewys. Hulle het hom gesoek, maar hy kon nie gevind word nie. Hulle het die Here weer geraadpleeg: “Het nog iemand hierheen gekom?” Die Here het gesê: “Kyk, hy kruip weg by die pakgoed.” Hulle het gehardloop en hom van daar af gebring. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die hele volk nie.” Die hele volk het hom toegejuig met die woorde: “Lank lewe die koning!” Samuel het toe met die volk gepraat oor die regte verbonde aan die koningskap, en dit in 'n •boekrol geskryf. Hy het dit voor die Here neergelê. Daarna het Samuel die hele volk laat gaan, elkeen na sy huis. Ook Saul het na sy huis in Gibea gegaan. Bekwame manne wie se harte deur God aangeraak is, het saam met hom gegaan. Maar booswigte het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” En hulle het hom geminag en geen geskenk vir hom geneem nie, maar hy het hom doof gehou. Nagas, die Ammoniet, het opgetrek en Jabes in Gilead beleër. Al die manne van Jabes sê toe vir Nagas: “Sluit met ons 'n ooreenkoms, dan sal ons u dien.” Maar Nagas, die Ammoniet, het vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek 'n ooreenkoms met julle sluit: Wanneer ek elkeen van julle se regteroog uitsteek en daardeur skande oor die hele Israel bring.” Die oudstes van Jabes sê toe vir hom: “Laat ons sewe dae toe, sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. As daar dan niemand is wat ons kan red nie, sal ons ons aan u oorgee.” Toe die boodskappers in Gibea van Saul aankom en die voorwaardes ten aanhore van die volk herhaal, het die hele volk hardop begin huil. Juis toe kom Saul van die land af terug, agter die osse aan. Saul vra toe: “Wat is dit met die volk dat hulle huil?” Hulle vertel hom toe wat die manne van Jabes gesê het. Die Gees van God het Saul oorweldig toe hy hierdie woorde hoor, en hy het baie kwaad geword. Hy neem toe twee osse, kap hulle op en stuur dit met boodskappers deur die hele gebied van Israel met die woorde: “Die een wat nie agter Saul en Samuel aan uittrek nie – so sal daar met sy osse gemaak word.” Vrees wat van die Here kom, het die manskappe oorval, en hulle het soos een man uitgetrek. Saul het hulle in Besek gemonster – die Israeliete was driehonderdduisend, en die manne van Juda was dertigduisend. Hulle het vir die boodskappers wat daar aangekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Gilead sê, ‘Môre sal daar vir julle redding wees wanneer die son warm is.’ ” Die boodskappers het gegaan, en toe hulle die manne van Jabes daaroor inlig, was hulle verheug. Die manne van Jabes het gesê: “Môre sal ons ons aan julle oorgee, en dan kan julle aan ons doen soos julle goeddink.” Die dag daarna het Saul die manskappe in drie eenhede opgestel. Hulle het die kamp teen die laaste nagwaak binnegeval en die Ammoniete bly neervel tot die dag op sy warmste was. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaar gedryf dat daar nie twee van hulle meer bymekaar was nie. Die manskappe het vir Samuel gesê: “Wie het gesê, ‘Moet Saul oor ons koning wees?’ Lewer dié manne uit, sodat ons hulle kan doodmaak!” Maar Saul het gesê: “Niemand mag op hierdie dag doodgemaak word nie, want vandag het die Here redding bewerk in Israel.” Samuel het vir die manskappe gesê: “Kom, laat ons na Gilgal gaan en die koningskap daar herbevestig.” Al die manskappe het toe na Gilgal gegaan en hulle het Saul daar in Gilgal, in die teenwoordigheid van die Here, as koning ingehuldig. Hulle het daar voor die Here •maaltydoffers geslag. Saul en al die manne van Israel was baie vrolik daar. Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het geluister na alles wat julle vir my gevra het, en ek het 'n koning oor julle aangestel. Hier is dan nou die koning wat voor julle uit sal loop. Ek het oud en grys geword, maar my seuns is nog hier by julle. “Ek is die een wat van my jeug af tot vandag toe voor julle uit geloop het. Hier is ek – bring getuienis teen my in voor die Here en voor sy gesalfde. Wie se bees het ek gevat? Wie se donkie het ek gevat? Wie het ek uitgebuit? Wie het ek mishandel? Uit wie se hand het ek 'n omkoopgeskenk aanvaar en so my oë gesluit? Ek sal dit aan julle teruggee.” Hulle het gesê: “U het ons nie uitgebuit nie en ons nie mishandel nie. U het nie uit enigiemand se hand iets gevat nie.” Hy sê toe vir hulle: “Die Here is 'n getuie teen julle, en sy gesalfde is op hierdie dag 'n getuie, dat julle niks in my hand gevind het nie.” “Hy is getuie,” het hulle gesê. Toe sê Samuel vir die volk: “Die Here is die Een wat Moses en Aäron aangewys het en julle voorouers uit Egipteland laat optrek het. Staan dan nou gereed, sodat ek voor die Here met julle die saak kan uitmaak oor al die weldade van die Here wat Hy aan julle en julle voorouers bewys het: Nadat Jakob in Egipte aangekom het, het julle voorouers na die Here om hulp geroep. Die Here het Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek en hulle op hierdie plek laat woon. Hulle het egter die Here hulle God vergeet, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Sisera, die bevelvoerder van die leër van Gasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gevoer het, het hulle na die Here om hulp geroep en gesê, ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en die Baäls en Astartes gedien. Red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien.’ Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en Samuel gestuur, en Hy het julle gered uit die hand van julle vyande aan alle kante, en julle het veilig gewoon. “Maar toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet oor ons regeer!’ – en dit terwyl die Here julle God julle koning is. Hier is dan nou die koning wat julle verkies het, waarvoor julle gevra het. “Kyk, die Here het vir julle 'n koning gegee. As julle ontsag sal hê vir die Here, Hom sal dien, na sy stem sal luister en nie teen die bevel van die Here in opstand kom nie, en as julle, en ook die koning wat oor julle regeer, die Here julle God altyd sal volg – dan is dit goed. As julle egter nie na die stem van die Here luister nie en in opstand kom teen die bevel van die Here, sal die hand van die Here teen julle en teen julle koning wees. “ Staan dan nou ook gereed en aanskou hierdie groot daad wat die Here voor julle oë gaan verrig. Is dit nie die tyd van die koringoes nie? Ek sal die Here aanroep, sodat Hy donderslae en reën beskik. Besef dan en sien in dat julle boosheid groot is – dit wat julle in die oë van die Here gedoen het deur 'n koning vir julle te vra. ” Toe het Samuel die Here aangeroep, en die Here het nog dieselfde dag donderslae en reën beskik. Die hele volk het groot ontsag gehad vir die Here en vir Samuel. Die hele volk sê toe vir Samuel: “Bid tot die Here u God ter wille van u dienaars, sodat ons nie sterf nie; want by al ons sondes het ons nog die kwaad bygevoeg om 'n koning vir ons te vra.” Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. Julle mag nie wegdraai nie, ja, nie agter nietige afgode aan wat geen voordeel kan bied of kan red nie, omdat hulle nietighede is. Want die Here sal sy volk nie in die steek laat nie, ter wille van sy groot Naam. Die Here het immers besluit om julle sy volk te maak. “Ook wat my betref – nooit sal ek teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle die goeie en reguit pad leer. Maar julle moet net vir die Here ontsag hê en Hom in getrouheid dien met julle hele hart. Ja, let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. As julle egter aanhou verkeerd optree, sal julle self en ook julle koning weggevee word.” Saul was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer. Saul het vir hom drieduisend man uit Israel gekies. Tweeduisend was by Saul in Migmas en in die bergland by Bet-El, en eenduisend was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Die res van die manskappe het hy weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. Jonatan het die Filistynse wagpos wat in Gibea was, aangeval, en die Filistyne het daarvan te hore gekom. Saul het in die hele land op die •ramshoring laat blaas om te laat weet: “Die Hebreërs moet dit hoor!” In die hele Israel is die nuus versprei: “Saul het die Filistynse wagpos aangeval; maar wat erger is, Israel is veragtelik gemaak by die Filistyne.” Die manskappe is toe opgeroep na Saul in Gilgal. Die Filistyne het saamgetrek om teen Israel te veg met dertig afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en manskappe so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan in Migmas, oos van Bet-Awen. Die manne van Israel sien toe dat daar vir hulle moeilikheid wag, want die manskappe was vasgekeer. Die manskappe het toe in grotte, klipskeure, rotswande, grafte en opgaarputte gaan wegkruip. Van die Hebreërs het die Jordaan oorgesteek na die landstreke van Gad en Gilead. Saul was egter nog in Gilgal. Al die manskappe het hom bewend gevolg. Hy het sewe dae lank gewag vir die vasgestelde tyd waarvan Samuel gepraat het, maar toe Samuel nie in Gilgal opdaag nie, het die manskappe van Saul af gedros. Saul sê toe: “Bring vir my die •brandoffer en •maaltydoffers!” En hy het die brandoffer geoffer. En toe, net toe hy die brandoffer gebring het – daar kom Samuel aan! Saul het uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te groet. Maar Samuel het gesê: “Wat het jy gedoen?” Waarop Saul toe antwoord: “Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af gedros het, dat u self nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, en dat die Filistyne by Migmas saamgetrek het, het ek gedink: Nou gaan die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, terwyl ek nog nie die Here se guns gesoek het nie. Ek het toe moed bymekaargeskraap en die brandoffer geoffer.” Toe sê Samuel vir Saul: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die opdrag van die Here jou God, dit wat Hy jou beveel het, nagekom nie. Het jy dit maar gedoen! Want dan sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie standhou nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart uitgesoek, en die Here het hom as leier volmag oor sy volk gegee, omdat jy dit wat die Here jou beveel het, nie nagekom het nie.” Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal af opgegaan na Gibea in Benjamin. Saul het die manskappe wat nog by hom was, gemonster, ongeveer seshonderd man. Terwyl Saul en sy seun Jonatan en die manskappe wat nog by hom was, in Geba in Benjamin gebly het, het die Filistyne kamp opgeslaan in Migmas. Stroperbendes het in drie eenhede uit die Filistyne se kamp uitgetrek. Een eenheid het weggedraai in die rigting van Ofra, in die Sualstreek, 'n ander eenheid het weggedraai in die rigting van Bet-Goron, en nog 'n eenheid in die rigting van die grensgebied wat uitkyk oor die vallei van Seboïm, na die woestyn se kant. Daar was nie 'n enkele grofsmid te vinde in die hele land Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Anders maak die Hebreërs swaarde of vegspiese.” Die hele Israel moes na die Filistyne afgaan, elkeen om sy ploegskaar, sy bylpik, sy dissel of sy sekel te laat slyp. Die fooi daarvoor was 'n pim vir 'n ploegskaar, 'n bylpik en 'n drietandvurk, asook vir byle en die herstel van 'n osdrywerstok. So kom dit dat, in 'n tyd van oorlog, daar nie 'n swaard of vegspies te vinde was in die hande van enige van die manskappe wat by Saul en Jonatan was nie. Saul en sy seun Jonatan het wel wapens gehad. 'n Garnisoen van die Filistyne het uitgegaan na die bergpas by Migmas. Op 'n dag sê Jonatan, seun van Saul, vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van die Filistyne daar oorkant.” Maar vir sy vader het hy dit nie vertel nie. Saul het aan die buitewyke van Gibea gesit onder die granaatboom by Migron. Daar was ongeveer seshonderd manskappe by hom. Agija, seun van Agitub, die broer van Ikabod, seun van Pinehas, seun van Eli, die priester van die Here in Silo, het toe die efod gedra. Ook die manskappe het nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. In die middel van die pas waar Jonatan wou oorgaan na die garnisoen van die Filistyne, was daar 'n spits rotspunt aan die oorkant, en 'n spits rotspunt aan die duskant. Die naam van die een rotspunt was Boses en die naam van die ander was Senne. Die een spits verrys aan die noordekant teenoor Migmas, en die ander aan die suidekant teenoor Geba. Jonatan sê toe vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van hierdie onbesnedenes. Miskien help die Here ons, want daar is vir die Here geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Sy wapendraer antwoord hom: “Doen enigiets wat u wil. As u naderkruip, kyk, ek is by u, wat u ook al besluit.” Toe sê Jonatan: “Dis reg; dan gaan ons oor na die manne, maar ons sorg dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê, ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan bly ons staan waar ons is, en klim nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê, ‘Kom op na ons toe!’ dan gaan ons op, want dan gee die Here hulle in ons hand. Dit sal vir ons die teken wees.” Hulle twee het toe gesorg dat die garnisoen van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne sê toe: “Kyk, daar is Hebreërs besig om uit die gate te kom waar hulle weggekruip het. ” Die manne van die garnisoen skreeu toe vir Jonatan en sy wapendraer. Hulle het gesê: “Klim op na ons toe, sodat ons julle 'n les kan leer. ” Daarop sê Jonatan vir sy wapendraer: “Klim op agter my aan, want die Here gee hulle in die hand van Israel.” Jonatan het hande-viervoet opgeklim, met sy wapendraer agter hom. Die Filistyne het voor Jonatan geval, en sy wapendraer agter hom het hulle die doodsteek toegedien. Hierdie eerste aanval, waarin Jonatan en sy wapendraer ongeveer twintig man neergevel het, het op naastenby die helfte van 'n ploegstrook plaasgevind. Dit het vrees veroorsaak in die kamp en in die veld, ja, onder al die manskappe. Die garnisoen en die stroperbendes, selfs hulle was aan die bewe. Die land het gesidder; dit was 'n vrees wat van God kom. Saul se verkenners by Gibea in Benjamin sien toe: Kyk, die massa mense spat uiteen in alle rigtings! Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Monster die manne, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Hulle hou toe 'n monstering en sowaar, Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie! Toe sê Saul vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was immers in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester praat, raak die opskudding wat in die kamp van die Filistyne heers, al hoe erger. Saul sê toe vir die priester: “Hou jou hand terug!” Saul en al die manskappe wat by hom was, het op sy bevel byeengekom en tot die stryd toegetree. En kyk, onder die Filistyne was daar volslae verwarring: Elkeen se swaard was teen sy makker gerig! En die Hebreërs wat vroeër by die Filistyne aangesluit het, wat van oraloor saam met hulle in die leër opgetrek het, selfs hulle was gereed om aan te sluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jonatan was. Al die manne van Israel wat in die heuwelland van Efraim weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug, en ook hulle het in die geveg aan die hakkejag deelgeneem. Die Here het Israel daardie dag verlos. Die geveg het voortgewoed tot anderkant Bet-Awen. Die manne van Israel was daardie dag onder druk, want Saul het die manskappe 'n eed opgelê deur te sê: “Vervloek is die man wat iets eet voor vanaand, en voordat ek my op my vyande gewreek het.” Nie een van die manskappe het toe sy mond aan iets gesit nie, en so ook die hele land. Hulle kom toe in 'n bos waar daar heuning op die grond was. Toe die manskappe by die bos aankom, is daar sowaar heuning in oorvloed! Maar niemand het daaraan geraak nie, want die manskappe was bang vir die eed. Jonatan het egter nie gehoor toe sy vader die manskappe 'n eed opgelê het nie. Hy het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek, dit in 'n heuningkoek gedoop en dit met sy hand na sy mond gebring. Sy oë het daarvan opgehelder. Een van die manskappe reageer toe en sê: “Jou pa het die manskappe streng onder eed geplaas deur te sê, ‘Vervloek is die man wat vandag iets eet.’ Dit is waarom die manskappe moeg geword het.” Daarop sê Jonatan: “My pa dompel die land in ellende. Kyk tog: My oë het opgehelder omdat ek aan hierdie bietjie heuning geproe het – hoeveel te meer die manskappe s'n, as hulle vandag goed kon eet van die buit wat hulle by hulle vyande afgeneem het! Want nou is die slagting onder die Filistyne nie so groot nie.” Hulle het daardie dag die Filistyne verslaan van Migmas af tot by Ajalon. Die manskappe was baie moeg, en het op die buit toegesak. Hulle het kleinvee, beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag. Hulle het dit met bloed en al geëet. Saul is meegedeel: “Kyk, die manskappe is besig om teen die Here te sondig deur vleis met bloed en al te eet.” Toe sê hy: “Julle was ontrou. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!” Saul het ook gesê: “Beweeg tussen die manskappe deur en sê vir hulle, ‘Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee hier na my toe bring en dit hier slag en eet, sodat julle nie teen die Here sondig deur dit met bloed en al te eet nie.’ ” Al die manskappe het toe daardie nag elkeen sy bees saamgebring en dit daar geslag. So het Saul vir die Here 'n altaar opgerig. Dit was die eerste keer dat hy vir die Here 'n altaar opgerig het. Saul het gesê: “Ons moet in die nag aftrek agter die Filistyne aan, tot ligdag toe onder hulle buit maak, en niemand onder hulle laat oorbly nie.” Die manskappe het gesê: “Doen wat goed is in u oë!” Maar die priester het gesê: “Laat ons hier eers tot God nader.” Saul het God toe geraadpleeg: “Moet ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in die hand van Israel oorgee?” Maar God het hom daardie dag nie geantwoord nie. Toe sê Saul: “Kom hier, al julle steunpilare van die volk! Vind uit, stel vas waarmee hierdie sonde vandag begaan is. Want so waar as die Here leef, Hy wat Israel verlos – selfs as dit deur my seun Jonatan gedoen is, moet hy beslis sterf. ” Maar van al die manskappe het nie een hom geantwoord nie. Toe sê hy vir die hele Israel: “Staan julle aan die een kant, dan sal ek en my seun Jonatan aan die ander kant staan.” Die manskappe het Saul geantwoord: “Doen wat goed is in u oë!” Saul sê toe vir die Here: “God van Israel, gee duidelikheid! ” Jonatan en Saul is uitgewys, en die manskappe was vry. Toe sê Saul: “Werp die lot tussen my en my seun Jonatan.” En Jonatan is uitgewys. Daarop sê Saul vir Jonatan: “Sê vir my wat jy gedoen het.” Jonatan het hom toe vertel. Hy het gesê: “Ek het maar net aan 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek – ek sal sterf.” Toe sê Saul: “Mag God my swaar straf as jy nie beslis sterf nie, Jonatan.” Maar die manskappe het vir Saul gesê: “Moet Jonatan, wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het, sterf? Hoegenaamd nie! So waar as die Here leef, nie 'n haar van sy kop sal op die grond val nie! Want met God se hulp het hy dit vandag gedoen.” So het die manskappe Jonatan laat vrykom, en hy het nie gesterf nie. Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle plek toe gegaan. Saul het die koningskap oor Israel onder beheer gekry, en het op alle fronte oorlog gevoer teen al sy vyande: teen Moab, teen die Ammoniete, teen Edom, teen die konings van Soba en teen die Filistyne. Waar hy ook al gekom het, het hy redding gebring. Hy het dapper opgetree en Amalek verslaan. Hy het Israel gered uit die hand van hulle plunderaars. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua; sy twee dogters se name was Merab, die oudste, en Migal, die jongste. Saul se vrou se naam was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die naam van die bevelvoerder van sy leër was Abner, seun van Ner, die oom van Saul. Kis, die vader van Saul, en Ner, Abner se vader, was seuns van Abiël. Daar was hewige gevegte met die Filistyne solank Saul geleef het. Wanneer Saul enige heldhaftige of onverskrokke man gesien het, het hy dié by hom laat aansluit. Samuel het vir Saul gesê: “Vir my het die Here gestuur om jou as koning te salf oor sy volk Israel. Luister dan nou na die woorde van die Here. So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Ek het raakgesien wat die Amalekiete aan Israel gedoen het, oor wat hulle vir Israel in die weg gelê het toe hy uit Egipte opgetrek het. Gaan dan nou en verslaan die Amalekiete. Julle moet alles wat aan hulle behoort, met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle medelye hê nie. Jy moet man en vrou, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie, laat doodmaak.’ ” Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Telaïm – tweehonderdduisend voetsoldate en tienduisend man uit Juda. Toe Saul by die stad van die Amalekiete aankom, het hy 'n hinderlaag in die dal opgestel. Saul het vir die Keniete gesê: “Gee pad! Kom weg daar tussen die Amalekiete, anders vernietig ek julle saam met hulle. Julle is die mense wat guns bewys het aan al die Israeliete toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe onder die Amalekiete uit padgegee. Saul het die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, wat langs Egipte lê. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewend gevange geneem, maar die hele volk het hy deur die swaard met die banvloek getref. Saul en die manskappe het Agag gespaar, asook die beste kleinvee en beeste, al die naasbestes, ook die ramme en alles wat goed was. Hulle wou dit nie met die banvloek tref nie; maar alles wat verwerplik en swak was, dié het hulle met die banvloek getref. Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en het die hele nag na die Here om hulp geroep. Samuel het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Samuel is meegedeel: “Saul het in Karmel aangekom, en hy het sowaar vir homself 'n gedenkteken opgerig. Toe het hy omgedraai en verder gegaan; hy is af na Gilgal toe.” Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Mag u geseënd wees deur die Here! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” Maar Samuel vra toe: “Wat is dan die geblêr van kleinvee in my ore en die gebulk van beeste wat ek hoor?” Saul het geantwoord: “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring; want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar, sodat hulle aan die Here u God kan offer. Die res het ons met die banvloek getref.” Toe sê Samuel vir Saul: “Hou op, dat ek aan jou kan bekend maak wat die Here vannag vir my gesê het.” Waarop Saul vir hom sê: “Praat!” Samuel sê toe: “Is jy nie, alhoewel jy klein is in jou eie oë, die hoof van die stamme van Israel nie? En het die Here jou nie as koning gesalf oor Israel nie? Die Here het jou op 'n pad gestuur. Hy het gesê, ‘Gaan tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek. Veg teen hulle totdat jy hulle uitgewis het.’ Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie, maar op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here? ” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het geluister na die stem van die Here. Ek het gegaan op die pad waarop die Here my gestuur het. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” Daarop het Samuel geantwoord: “Is daar vir die Here vreugde in •brandoffers en •maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme. Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. ” Toe sê Saul vir Samuel: “Ek het gesondig, ja, ek het die bevel van die Here en u opdragte oortree, omdat ek bang was vir die manskappe en na hulle geluister het. Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug, sodat ek voor die Here in aanbidding kan buig.” Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het die Here jou verwerp as koning oor Israel.” Toe Samuel omdraai om te loop, gryp Saul die soom van sy mantel, en dit het geskeur. Samuel sê toe vir hom: “Die Here het vandag die koningskap van Israel van jou afgeskeur en Hy het dit aan jou medemens gegee wat beter as jy is. Verder, die Ewige van Israel breek nie sy woord nie, en Hy is nie spyt daaroor nie; Hy is immers nie 'n mens nie, dat Hy spyt sou kry nie. ” “Ek het gesondig,” het Saul gesê. “Handhaaf nou asseblief my eer voor die oudstes van my volk en voor Israel, en gaan saam met my terug, dat ek voor die Here, u God, in aanbidding kan buig.” Samuel het toe teruggegaan, agter Saul aan, en Saul het voor die Here in aanbidding gebuig. Samuel het gesê: “Bring Agag, die koning van die Amalekiete, na my toe.” Terwyl Agag in boeie na hom toe loop, het hy gedink: “Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk! ” Maar toe sê Samuel: “Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so word jou moeder kinderloos onder die vroue.” Samuel het Agag toe in stukke gekap voor die Here in Gilgal. Samuel het na Rama gegaan, terwyl Saul opgegaan het na sy huis in Gibea van Saul. Samuel het tot die dag van sy dood nie weer vir Saul gesien nie, alhoewel Samuel oor Saul getreur het. Die Here was spyt dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel. Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My 'n koning gesien. ” Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek gaan? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.” Toe sê die Here: “'n Verskalf moet jy saam met jou neem en dan moet jy sê, ‘Om aan die Here 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het.’ Nooi jy dan vir Isai na die offer en Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Jy moet vir My die een salf wat Ek vir jou sal sê. ” Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet en vra: “Beteken u koms vrede?” Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die Here 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die •maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi. Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die Here, sy gesalfde!” Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het hulle nie gekies nie.” Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.” Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en 'n goeie voorkoms. Die Here sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem. Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan. Die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat van die Here af kom, het hom beangs gemaak. Saul se amptenare het vir hom gesê: “Kyk, dit is 'n bose gees van God wat u beangs maak. U Majesteit moet maar net praat. U dienaars hier voor u sal iemand soek wat weet hoe om op 'n lier te speel. Wanneer die bose gees van God oor u kom, kan hy dit bespeel en dit sal goed wees vir u. ” Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk asseblief vir my uit vir iemand wat goed kan speel, en bring hom na my.” Een van die jong manne antwoord toe en sê: “Kyk, ek het 'n seun van Isai, van Betlehem, gesien wat weet hoe om te speel. Hy is 'n dapper kryger, 'n krygsman; hy kan sy woord goed doen en is aantreklik. En die Here is met hom. ” Saul stuur toe boodskappers na Isai met die versoek: “Stuur Dawid, jou seun wat by die kleinvee is, na my.” Isai neem toe 'n donkie en stuur dit met brood, 'n leersak wyn en 'n boklam, met sy seun Dawid na Saul. Dawid het by Saul aangekom en in sy diens getree. Saul het baie van hom gehou, en Dawid het sy wapendraer geword. Saul het vir Isai laat weet: “Dawid moet asseblief in my diens bly, want hy het guns gevind in my oë.” Telkens wanneer die gees van God oor Saul gekom het, het Dawid die lier geneem en daarop gespeel. Dit het vir Saul verligting gebring; dit het hom goed gedoen. Die bose gees het dan van hom gewyk. Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei. Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle. Daar tree toe 'n baasvegter uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en 'n span. Daar was 'n helm van brons op sy kop, en hy het 'n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel brons. Daar was bronsplate voor sy skene en 'n kromswaard van brons tussen sy skouers. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster. Iemand wat 'n grootskild dra, het voor hom uit geloop. Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie 'n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.” Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel 'n bespotting! Stuur vir my 'n man, sodat ons kan veg!” Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang. Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Saul gevolg, maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel. Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan. Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor. Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang. Die manne van Israel het gesê: “Sien julle hierdie man wat na vore tree? Ja, dit is net om 'n bespotting te maak van Israel dat hy na vore tree! Die man wat hom verslaan – vir hom sal die koning met groot rykdom oorlaai, sy dogter aan hom gee en sy familie vrystel van verpligtinge in Israel.” Dawid vra toe vir die manne wat by hom staan: “Wat sal gedoen word vir die man wat hierdie Filistyn verslaan en die bespotting van Israel laat wyk? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn nogal dat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God?” Die manskappe het hom met dieselfde woorde geantwoord: “Dit is wat gedoen sal word vir die man wat hom verslaan.” Sy oudste broer, Eliab, het gehoor toe hy met die manne praat. Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen afgekom, en by wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn agtergelaat? Ek ken jou verwaandheid en die boosheid van jou hart. Ja, dit is met die doel om die geveg te sien, dat jy hierheen afgekom het.” Dawid het geantwoord: “Wat het ek nou gedoen? Is dit nie maar net 'n vraag nie? ” Dawid het van Eliab weggedraai na iemand anders en dieselfde vraag gevra. Die manskappe het hom dieselfde antwoord gegee as die eerste. Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword; en toe hulle dit vir Saul vertel, het hy hom laat haal. Dawid het vir Saul gesê: “'n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.” Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n lam uit die trop wegdra, gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. U dienaar het al 'n leeu en selfs ook 'n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. Die Here wat my gered het uit die klou van 'n leeu en die klou van 'n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here met jou wees!” Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het 'n helm van brons op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek. Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af. Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader. Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar 'n seun, rooierig, en met 'n mooi voorkoms. Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n vegspies en met 'n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy 'n bespotting maak. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die Here verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee.” Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. Dawid het sy hand in die sak gesteek en 'n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval. Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met 'n slingervel en 'n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie 'n swaard in Dawid se hand nie. Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. Die manne van Israel en Juda het opgespring, die oorlogskreet aangehef en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en tot by die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het op die pad na Saärajim en tot by Gat en Ekron gelê. Daarna het die Israeliete teruggekeer van die hakkejag op die Filistyne en hulle kampe geplunder. Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit. Net toe Saul sien dat Dawid uitgaan om die Filistyn aan te durf, het hy vir Abner, die bevelvoerder van die leër gevra: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner het geantwoord: “So waar as wat u leef, o koning, ek weet nie!” Die koning sê toe: “Vra jý wie se seun die jongeling is.” Net toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. Saul vra toe vir hom: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u dienaar Isai, uit Betlehem.” Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, was Jonatan reeds baie geheg aan Dawid. Jonatan het hom liefgekry soos homself. Saul het hom op daardie dag saamgeneem en hom nie toegelaat om na sy familie terug te gaan nie. Jonatan het met Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, ja selfs sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind. Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. Die dansende vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die Here was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Saul het vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Haar sal ek aan jou as vrou gee. Wees net vir my 'n onverskrokke vegter en voer die oorloë van die Here. ” Saul het gedink: “Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.” Dawid het vir Saul gesê: “Wie is ek, en wie is my bloedverwante, die familiegroep van my vader in Israel, dat ek 'n skoonseun van die koning sou word?” Teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy egter aan Adriël van Megola, as vrou gegee. Maar Migal, Saul se dogter, was verlief op Dawid. Hulle het dit vir Saul vertel, en die saak was reg in sy oë. Saul het gedink: “Ek sal haar aan hom gee, sodat sy vir hom 'n valstrik kan wees, en die hand van die Filistyne dan teen hom sal wees.” Saul het toe vir Dawid gesê: “Deur die tweede dogter kan jy vandag my skoonseun word.” Saul het sy amptenare beveel: “Sê stilletjies vir Dawid, ‘Kyk, die koning hou van jou, en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou die koning se skoonseun.’ ” Die amptenare van Saul het hierdie woorde vir Dawid in die oor gefluister, maar Dawid het gesê: “Is dit in julle oë so 'n ligte saak om 'n skoonseun van die koning te word? Ek is arm en 'n nikswerd.” Saul se amptenare het aan hom berig gebring: “Dit is die woorde wat Dawid gesê het.” Toe sê Saul: “So moet julle vir Dawid gaan sê, ‘Die koning wil geen ander bruidsprys hê as 'n honderd voorhuide van Filistyne nie om wraak te neem op die koning se vyande.’ ” Saul het beplan om Dawid te laat sneuwel deur die hand van die Filistyne. Toe sy amptenare hierdie woorde aan Dawid oordra, was die saak reg in Dawid se oë om so die koning se skoonseun te word. Voor die bepaalde tyd om was, het Dawid gereedgemaak en gegaan, hy en sy manne. Hy het tweehonderd man onder die Filistyne doodgeslaan. Dawid het hulle voorhuide gebring en die volle getal is aan die koning oorhandig, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul sy dogter Migal vir hom as vrou gegee. Saul het ingesien en besef dat die Here met Dawid is, en dat Migal, Saul se dogter, hom liefhet. Saul was toe nog banger vir Dawid, en hy het vir altyd 'n vyand van Dawid gebly. Die aanvoerders van die Filistyne het uitgetrek om oorlog te voer, maar telkens wanneer hulle uitgetrek het, het Dawid meer sukses behaal as al Saul se offisiere. Sy naam het groot agting afgedwing. Saul het vir sy seun Jonatan en vir al sy amptenare gesê om Dawid dood te maak, maar Jonatan, Saul se seun, het baie van Dawid gehou. Jonatan het dit vir Dawid gaan vertel: “My pa, Saul, is daarop uit om jou dood te maak. Wees daarom asseblief môreoggend versigtig. Gaan sit op 'n geheime plek; kruip weg. Ek sal uitkom en langs my pa gaan staan in die veld waar jy is. Ek sal met my pa oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by sy vader, by Saul. Hy het vir hom gesê: “Die koning moet tog nie verkeerd doen wat sy dienaar Dawid betref nie, want hy het niks verkeerds teenoor u gedoen nie. Trouens, sy optrede was grootliks tot u voordeel. Hy het sy lewe in sy hand geneem en die Filistyn verslaan; en die Here het 'n groot oorwinning bewerk vir die hele Israel. U het dit gesien en was verheug. Waarom sal u dan verkeerd doen deur onskuldige bloed te stort en Dawid sonder rede doodmaak?” Saul het na Jonatan geluister; en Saul het 'n eed afgelê: “So waar as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie!” Jonatan het Dawid geroep, en Jonatan het hom alles vertel wat gesê is. Jonatan het Dawid na Saul geneem, en hy was in sy diens soos voorheen. Daar het weer oorlog uitgebreek, en Dawid het uitgetrek en teen die Filistyne geveg. Hy het 'n groot slagting onder hulle aangerig, en hulle het voor hom gevlug. 'n Bose gees van die Here het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies in sy hand. Dawid was besig om op die lier te speel. Saul het probeer om Dawid met die vegspies teen die muur vas te pen, maar hy het hom ontwyk, en Saul het die vegspies in die muur vas gegooi. Dawid het toe padgegee en daardie nag ontvlug. Saul het gesante na Dawid se huis gestuur om dit dop te hou en hom die volgende oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou, Migal, het hom ingelig en gesê: “As jy nie vannag vir jou lewe vlug nie, is jy môre dood.” Migal het Dawid toe deur 'n venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. Migal neem toe die huisgod, sit dit in die bed met 'n net van bokhaar by sy kop, en bedek dit met 'n kledingstuk. Toe Saul gesante stuur om Dawid te vang, het sy gesê: “Hy is siek.” Saul stuur toe die gesante om self vir Dawid te sien, en sê: “Bring hom met bed en al na my toe, sodat ek hom kan doodmaak.” Toe die gesante ingaan – daar lê die huisgod in die bed met die net van bokhaar by sy kop! Saul sê toe vir Migal: “Waarom het jy my op so 'n manier mislei en my vyand laat gaan dat hy kon ontsnap?” Maar Migal het Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê, ‘Laat my wegkom! Waarom moet ek jou doodmaak?’ ” Dawid het gevlug. Hy het ontsnap en by Samuel in Rama aangekom. Hy het Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy en Samuel het toe gegaan en in Najot gaan bly. Saul is toe meegedeel: “Kyk, Dawid is in Najot in Rama.” Daarop stuur Saul gesante om Dawid te gaan vang. Toe hulle die groep profete in geestesvervoering sien, met Samuel wat daar staan as hulle voorganger, het die Gees van God oor Saul se gesante gekom, en ook hulle het in geestesvervoering geraak. Toe dit aan Saul meegedeel is, het hy ander gesante gestuur, maar ook hulle het in •geestesvervoering geraak. Saul het weer, vir die derde keer, gesante gestuur, en ook hulle het in geestesvervoering geraak. Hy het toe ook self na Rama gegaan. Toe hy aankom by die groot opgaarput wat by Segu is, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?” Iemand het geantwoord: “Daar in Najot in Rama.” Hy gaan toe daarheen, na Najot in Rama. Maar die Gees van God het ook oor hom gekom, en terwyl hy aanstap, het hy in geestesvervoering geraak – totdat hy in Najot in Rama aangekom het. Ook hy het sy klere uitgetrek, en ook hy was in geestesvervoering in Samuel se teenwoordigheid. Daardie hele dag en nag het hy kaal daar gelê. Daarom word daar gesê: “Is Saul ook onder die profete?” Dawid het uit Najot in Rama gevlug. Hy het by Jonatan gekom en hom reguit gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my skuld, wat is my sonde voor jou pa, dat hy my lewe soek?” Hy het hom geantwoord: “Hoegenaamd nie! Jy sal nie sterf nie! Kyk, my pa doen niks, groot of klein, sonder om my in te lig nie. Waarom sou my pa hierdie saak vir my wegsteek? Dit kan nie wees nie.” Maar Dawid het verder onder eed verklaar en gesê: “Jou pa weet baie goed dat ek jou guns gewen het, daarom dink hy, ‘Jonatan mag nie hiervan weet nie, anders is hy ontsteld.’ Maar so waar as die Here leef en jy leef: Daar is maar net een tree tussen my en die dood!” Jonatan sê toe vir Dawid: “Wat jou wens ook al is, sal ek vir jou doen.” Dawid het vir Jonatan gesê: “Kyk, môre is dit nuwemaan, dan is ek verplig om saam met die koning aan te sit vir ete. Maar laat my gaan, dan sal ek in die veld skuilhou tot die derde aand. As jou pa uitdruklik oor my navraag doen, moet jy sê, ‘Dawid het my dringend versoek om gou na Betlehem, na sy tuisdorp, te gaan, want daar is 'n •maaltydoffer vir die hele familie.’ As hy sê, ‘Goed!’ is jou dienaar veilig; maar as hy baie kwaad word, weet dan dat die onheil, wat hom betref, vasstaan. Bewys trou aan jou dienaar, want in 'n verbond voor die Here het jy jou dienaar aan jou verbind. As ek skuld dra, maak jy my dan dood. Maar aan jou pa – om watter rede sou jy my aan hom uitlewer?” Toe sê Jonatan: “Dit sal hoegenaamd nie met jou gebeur nie! Want, as ek vir seker weet dat dit by my pa vasstaan om die onheil oor jou te bring – sal ek jou dan nie daarvan vertel nie?” Dawid vra toe vir Jonatan: “Wie sal my kom vertel of jou pa jou 'n harde antwoord gegee het?” Toe sê Jonatan vir Dawid: “Kom, laat ons uitgaan veld toe.” Toe hulle twee buite in die veld was, sê Jonatan vir Dawid: “Voor die Here, die God van Israel: Ek sal môre of oormôre ongeveer hierdie tyd my pa uitvra. En kyk, as dit gunstig is vir Dawid – sal ek dan nie iemand na jou stuur om jou in te lig nie? Mag die Here vir my, Jonatan, swaar straf as ek dít nie doen nie: As onheil oor jou my pa se keuse is, sal ek jou inlig en jou wegstuur, dat jy veilig kan weggaan. En mag die Here dan by jou wees, soos Hy by my pa was. En mag dit nie gebeur dat, terwyl ek nog leef, jy die trou van die Here nie aan my bewys nie, en ook nie dat, wanneer ek dood is, jy jou guns aan my huis onttrek nie – ook nie wanneer die Here elke vyand van Dawid van die aardbodem af verdelg het nie.” Jonatan het 'n verbond gesluit met die huis van Dawid, en die Here het wraak geneem op Dawid se vyande. Jonatan het weer vir Dawid 'n eed laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom innig liefgehad. Jonatan sê toe vir hom: “Môre is dit nuwemaan. Jy sal gemis word, want jou plek sal leeg wees. Maar op die derde dag, wanneer dit weer 'n gewone werksdag is, moet jy ver afgaan, tot jy kom by die plek waar jy weggekruip het. Gaan sit dan langs die Ezel-rots. Ek aan die ander kant, sal self drie pyle daar langsaan skiet, asof ek na 'n teiken skiet. Kyk, dan gaan ek my jong dienaar stuur met die woorde, ‘Gaan soek die pyle!’ As ek duidelik vir die jong dienaar sê, ‘Kyk, die pyle is van jou af duskant toe; kry dit!’ kom dan, want jy is veilig en daar is geen probleem nie, so waar as die Here leef! Maar as ek dít vir die jong man sê, ‘Kyk, die pyle is van jou af anderkant toe’, gaan, want die Here stuur jou weg. Wat die saak betref waaroor ons, ek en jy, gepraat het, kyk, die Here is vir ewig getuie tussen my en jou.” Dawid het toe in die veld gaan wegkruip. Dit was nuwemaan en die koning het by die maaltyd gaan sit om te eet. Toe die koning op sy plek gaan sit soos die vorige kere, op die plek teen die muur, het Jonatan opgestaan. Abner het langs Saul gesit, en Dawid se plek was leeg. Saul het dié dag egter niks gesê nie, want hy het gedink: “Iets het voorgeval dat hy nie rein is nie; ja, hy is nie rein nie.” Op die dag ná nuwemaan, die tweede dag, was Dawid se plek weer leeg. Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai nie gister en ook nie vandag na die maaltyd gekom nie?” Jonatan het Saul geantwoord: “Dawid het my ernstig versoek om na Betlehem te gaan. Hy het gesê, ‘Laat my asseblief gaan, want dit is die offer van ons familiegroep in die dorp en my broer het my self die opdrag gegee. As jy my dan nou goedgesind is, laat ek asseblief vrygestel word, sodat ek my familielede kan sien.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.” Saul het hom vir Jonatan vererg en vir hom gesê: “Jou eiewys klein misbaksel! Weet ek nie maar te goed dat jy die seun van Isai verkies, tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat aan jou geboorte gegee het nie? Want solank die seun van Isai op aarde leef, sal nie jy of jou koningskap staande bly nie. En nou, stuur iemand en bring hom na my! Hy is so goed soos dood!” Jonatan het egter sy vader, Saul, geantwoord en vir hom gesê: “Waarom moet hy sterf? Wat het hy gedoen?” Toe gooi Saul sy vegspies na hom om hom te tref. Jonatan het besef dat, wat sy vader betref, dit 'n uitgemaakte saak was om Dawid dood te maak. Jonatan het briesend kwaad van die tafel af opgestaan. Hy het nie enige kos geëet op tweede nuwemaan nie; want hy was ontsteld oor Dawid, omdat sy vader hom verneder het. In die oggend het Jonatan, volgens die afspraak met Dawid, uitgegaan na die veld. 'n Jong dienaartjie was saam met hom. Hy sê toe vir die jong dienaar: “Hardloop; gaan haal die pyle wat ek afskiet!” Die jong dienaar het gehardloop, en hy het 'n pyl bo-oor hom afgeskiet. Toe die jong dienaar by die plek kom waarheen Jonatan die pyl geskiet het, roep Jonatan agter die jong dienaar aan en sê: “Lê die pyl nie verder van jou af nie?” Jonatan het ook agter die jong dienaar aan geroep: “Maak baie gou! Moenie gaan staan nie!” Die jong dienaar van Jonatan het die pyl opgetel en by sy heer gekom. Die jong dienaar self het niks geweet nie. Net Jonatan en Dawid het van die saak geweet. Jonatan gee toe sy wapens vir die jong dienaar wat by hom was en sê vir hom: “Gaan, neem dit stad toe!” Toe die jong dienaar weg is, staan Dawid langs die kliphoop op, val neer met sy gesig na die grond, en buig drie maal diep neer. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid buite homself was. Jonatan sê toe vir Dawid: “Gaan in vrede, want ons twee het in die Naam van die Here 'n eed afgelê en gesê, ‘Die Here self sal getuie wees tussen my en jou, en tussen my nageslag en jou nageslag vir ewig. ’ ” Daarna het hy opgestaan en weggegaan, en Jonatan het die stad binnegegaan. Dawid het in Nob by Agimeleg, die priester, aangekom. Agimeleg het Dawid vreesbevange tegemoetgegaan en hom gevra: “Waarom is u alleen en is daar niemand by u nie?” Dawid sê toe vir Agimeleg, die priester: “Die koning self het 'n saak aan my opgedra, maar hy het vir my gesê, ‘Niemand mag iets weet van die saak waaroor ek jou stuur en jou opdrag gee nie.’ Ek het met my jong dienaars afgespreek om mekaar op 'n sekere plek te ontmoet. En nou, wat het u beskikbaar? Vyf brode? Gee dit vir my; of wat u ook al het.” Die priester het Dawid geantwoord en gesê: “Gewone brood het ek nie byderhand nie, maar heilige brood is hier wel, as die jong dienaars hulleself maar net van vroue weerhou het. ” Dawid antwoord toe die priester en sê vir hom: “Ek verseker jou, niemand van ons het naby 'n vrou gekom nie, soos dit altyd is wanneer ek op 'n veldtog uittrek. Die toerusting van die jong dienaars is heilig. Dit is 'n gewone sending – hoeveel te meer sal hulle dan nie, met hulle toerusting, vandag heilig wees nie.” Toe gee die priester vir hom heilige brood, omdat daar geen ander brood daar was nie, behalwe die vertoonbrode wat voor die Here verwyder word om dit met warm brood te vervang op die dag wanneer dit weggeneem word. Op daardie dag was een van Saul se amptenare wat afgesonder is voor die Here egter ook daar. Sy naam was Doëg die Edomiet, die voorman van Saul se veewagters. Dawid het ook vir Agimeleg gevra: “U het nie dalk hier 'n vegspies of 'n swaard byderhand nie? Ek het nie my swaard of my wapens met my saamgeneem nie, omdat die saak van die koning so dringend is.” Toe sê die priester: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die Ela-vallei verslaan het, kyk, dit is in 'n kledingstuk toegedraai agter die efod. As u dít vir u wil neem, neem dit; want hier is geen ander swaard behalwe dié een nie.” Dawid sê toe: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.” Dawid het gereedgemaak en dieselfde dag nog vir Saul gevlug, en by Agis die koning van Gat aangekom. Agis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit dan nie Dawid dié, die koning van die land nie? Is dit nie vir hom wat hulle in hulle kringdanse gesing het nie? “ ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ ” Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bang geword vir Agis, die koning van Gat. Hy het hom toe voor hulle oë kranksinnig gehou. Hy het voorgegee dat hy waansinnig is terwyl hy in hulle hande was, en het merke gemaak op die poortdeure en die kwyl in sy baard laat afloop. Agis het vir sy amptenare gesê: “Kyk, julle sien die man gedra hom soos 'n mal mens – waarom bring julle hom na my toe? Het ek 'n tekort aan mal mense dat julle hierdie man gebring het om sy mal streke hier by my te kom uithaal? Moet hierdie man in my huis inkom?” Dawid is toe daar weg en het ontvlug na die grot van Adullam. Toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe. Elkeen wat in die moeilikheid was, wat geld geskuld het, of verbitterd was, het by hom aangesluit, en hy het hulle •aanvoerder geword. Daar was ongeveer vierhonderd man by hom. Van daar af is Dawid na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gesê: “Laat my vader en moeder asseblief na julle uitwyk, totdat ek weet wat God met my wil doen.” Hy het hulle toe by die koning van Moab besorg, en hulle het by hom gebly so lank as wat Dawid in die bergskuiling was. Die profeet Gad het egter vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die bergskuiling bly nie. Gaan weg! Sorg dat jy in die gebied van Juda kom.” Dawid het toe vertrek en die bos van Geret binnegegaan. Saul het gehoor dat Dawid, en ook die manne wat by hom was, opgemerk is. Saul het in Gibea op die hoogte onder 'n tamarisk gesit met sy vegspies in sy hand, met al sy amptenare wat daar by hom staan. Saul sê toe vir sy amptenare wat by hom staan: “Luister, Benjaminiete! Gaan die seun van Isai ook vir julle almal landerye en wingerde gee, julle almal aanstel as aanvoerders van duisend en aanvoerders van honderd? Want julle smee almal 'n komplot teen my, en niemand lig my in wanneer my eie seun met die seun van Isai 'n ooreenkoms sluit nie; ja, niemand van julle het simpatie met my en maak dit aan my bekend dat my eie seun my dienaar teen my laat opstaan nie, om my voor te lê soos dit op die oomblik is.” Doëg, die Edomiet, wat daar by Saul se amptenare staan, reageer toe daarop en sê: “Ek het gesien die seun van Isai kom in Nob aan, by Agimeleg, seun van Agitub. Hy het die Here vir hom geraadpleeg en padkos vir hom gegee; ook die swaard van Goliat, die Filistyn, het hy vir hom gegee. ” Die koning ontbied toe Agimeleg, die priester, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters wat in Nob was. Hulle het almal na die koning gekom. “Luister mooi, seun van Agitub!” het Saul gesê. “Tot u diens, my heer!” het hy geantwoord. Saul sê toe vir hom: “Waarom het jy 'n komplot teen my gesmee, jy en die seun van Isai, deur vir hom brood en 'n swaard te gee en God vir hom te raadpleeg, sodat hy teen my in opstand gekom het om my voor te lê, soos dit op die oomblik is?” Agimeleg het die koning geantwoord en gesê: “Maar wie onder al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning, aanvoerder van u lyfwag, en geëer in u huis? Het ek nou eers God vir hom begin raadpleeg? Hoegenaamd nie! Die koning moet nie sy dienaar en sy hele familie by die saak betrek nie, want u dienaar het van hierdie hele saak, groot of klein, niks geweet nie.” Maar die koning sê: “Jy moet beslis sterf, Agimeleg; jy en jou hele familie.” Toe sê die koning vir die hardlopers wat by hom staan: “Draai om! Maak die priesters van die Here dood, want ook hulle ondersteun Dawid. Hulle het immers geweet dat hy aan die vlug is, maar hulle het my nie daaroor ingelig nie.” Die dienaars van die koning wou egter nie hulle hand uitsteek om die priesters van die Here aan te val nie. Toe sê die koning vir Doëg: “Draai jy om en val die priesters aan!” Toe draai Doëg, die Edomiet, om en val self die priesters aan. Hy het daardie dag vyf-en-tagtig manne wat die linne-efod dra, doodgemaak. Hy het Nob, die dorp van die priesters, met die skerpte van die swaard verslaan: van man tot vrou, kinders tot suigelinge; beeste, donkies en skape – alles met die skerpte van die swaard. 'n Seun van Agimeleg, seun van Agitub, het egter ontkom. Sy naam was Abjatar. Hy het agter Dawid aan gevlug; en toe Abjatar vir Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here uitgemoor het, het Dawid vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit beslis vir Saul gaan vertel. Eintlik het ek teen elke persoon in jou familie gedraai. Bly by my, moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Ja, jy is veilig by my.” Daar is aan Dawid berig gebring: “Kyk, die Filistyne is besig om teen Keïla te veg, en hulle plunder die dorsvloere!” Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek gaan en daardie Filistyne aanval?” Die Here het vir Dawid gesê: “Gaan, val die Filistyne aan en bevry Keïla!” Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Kyk, hier in Juda leef ons reeds in vrees – hoeveel te meer as ons na Keïla toe gaan, na die gevegslinies van die Filistyne?” Dawid het weer die Here geraadpeeg, en die Here het hom geantwoord en gesê: “Maak gereed, gaan af na Keïla, want Ek gaan die Filistyne in jou hand gee.” Dawid en sy manne het toe na Keïla gegaan en teen die Filistyne geveg. Hy het hulle vee weggedryf en 'n groot slagting onder hulle aangerig. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry. Toe Abjatar, seun van Agimeleg, na Dawid in Keïla gevlug het, het hy afgegaan met 'n efod by hom. Toe daar aan Saul berig gebring is dat Dawid in Keïla aangekom het, het Saul gesê: “God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself toegesluit deur in 'n dorp met poortdeure en 'n sluitbalk in te gaan.” Daarop het Saul al die manskappe opgeroep vir die geveg om af te trek na Keïla en Dawid en sy manne te beleër. Dawid het egter geweet dat Saul besig is om kwaad teen hom te beplan. Hy sê toe vir Abjatar, die priester: “Bring die efod nader!” Toe sê Dawid: “ Here, God van Israel, u dienskneg het betroubaar verneem dat Saul van plan is om na Keïla te kom en om vanweë my die dorp te verwoes. Sal die burgers van Keïla my oorlewer in die hand van Saul? Gaan Saul afkom, soos u dienskneg verneem het? Here, God van Israel, maak dit tog aan u dienskneg bekend!” Die Here het geantwoord: “Hy gaan afkom.” Toe vra Dawid: “Sal die burgers van Keïla my en my manne oorlewer in die hand van Saul?” Die Here het geantwoord: “Hulle sal.” Daarop het Dawid en sy manne – ongeveer seshonderd man – gereedgemaak en uit Keïla weggetrek. Hulle het toe bly rondbeweeg. Aan Saul is berig dat Dawid ontvlug het uit Keïla. Hy het toe sy veldtog gestaak. Dawid het in die woestyn, in die bergskuilings, gebly. Daarna het hy in die berggebied van die woestyn van Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie. Dawid het besef dat Saul uitgetrek het om sy lewe te neem. Terwyl Dawid in Goresa was, in die woestyn van Sif, het Jonatan, Saul se seun, gereedgemaak en na Dawid in Goresa gegaan. Hy het hom in die Naam van God bemoedig en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want Saul, my pa, sal jou nie in die hande kry nie. Jy is die een wat koning sal word oor Israel, en ek self sal tweede in bevel wees. Selfs my pa, Saul, weet dat dit so is.” Nadat hulle twee voor die Here 'n ooreenkoms gesluit het, het Dawid in Goresa gebly, en Jonatan het na sy huis teruggegaan. Sifiete het na Saul in Gibea opgegaan en gesê: “Hou Dawid hom nie daar by ons skuil in die bergskuilings by Goresa, op die heuwel van Hagila suid van Jesimon nie? As u, o koning, dan nou graag wil afkom na ons, kom gerus af! Dit sal ons verantwoordelikheid wees om hom in die hand van die koning oor te lewer.” Saul het gesê: “Mag julle deur die Here geseën word, omdat julle medelye met my het. Gaan tref verdere voorbereidings. Maak seker en bekyk sy plek – waar sy spore is, wie hom daar gesien het. Want hulle sê vir my hy is baie geslepe. Gaan kyk, en maak seker van al die plekke waar hy wegkruip, en kom dan terug na my toe met betroubare inligting. Ek sal dan met julle saamgaan, en as hy wel in die landstreek is, sal ek hom opspoor tussen al die familiegroepe van Juda.” Hulle het toe gereedgemaak en voor Saul uit na Sif gegaan. Dawid en sy manne was in die woestyn van Maon, in die Araba, suid van Jesimon. Saul en sy manne het hom toe gaan soek. Dawid is daaroor ingelig, en hy het na die rotsskuiling afgetrek en in die woestyn van Maon gebly. Toe Saul dit hoor, het hy Dawid in die woestyn van Maon agtervolg. Saul het al langs die een kant van die berg getrek, en Dawid en sy manne al langs die ander kant van die berg. Dawid het haastig op die vlug geslaan om van Saul af weg te kom, maar Saul en sy manne was besig om Dawid en sy manne te omsingel om hulle gevange te neem. 'n Boodskapper het egter by Saul aangekom en gesê: “Maak tog gou en kom, want die Filistyne het 'n aanval geloods op die land!” Saul het Dawid toe nie verder agtervolg nie en die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Sela-Hammaglekot. Dawid het toe daarvandaan opgegaan en in die bergskuilings by En-Gedi gaan bly. Nadat Saul teruggekeer het vanwaar hy die Filistyne agtervolg het, is daar aan hom berig gebring: “Kyk, Dawid is in die woestyn by En-Gedi.” Saul het drieduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en gegaan om by Suree-Hajjeëlím na Dawid en sy manne te gaan soek. Op pad het hy by die veekrale aangekom, waar daar 'n grot was. Saul het daar ingegaan om sy voete te bedek. Dawid en sy manne het in die agterste deel van die grot gesit. Die manne van Dawid sê toe vir hom: “Kyk, dit is die dag waarvan die Here vir jou gesê het, ‘Kyk, Ek gaan jou vyande in jou hand gee.’ Maak dan met hom soos jy goeddink.” Dawid het opgestaan en stilletjies 'n soom van Saul se mantel afgesny. Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy 'n soom van Saul se bokleed afgesny het. Hy het vir sy manne gesê: “Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit so iets doen aan my heer, die gesalfde van die Here, deur my hand teen hom uit te steek. Hy is immers die gesalfde van die Here. ” Met dié woorde het Dawid sy manne berispe en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie. Saul het opgestaan, uit die grot gegaan en koers gekry. Daarna het Dawid opgestaan en uit die grot gegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “My heer die koning!” Toe Saul omkyk, kniel Dawid met sy gesig na die grond en buig diep neer. Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader, kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem. Die Here sal oordeel tussen u en my, en die Here sal my op u wreek, maar my hand sal nie teen u wees nie. Soos die ou spreekwoord sê, “ ‘Uit goddeloses kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie. “ Agter wie aan het die koning van Israel uitgetrek? Wie is u besig om te agtervolg? U is agter 'n dooie hond aan, agter een vlooi aan! Mag die Here regter wees; mag Hy oordeel tussen u en my; mag Hy kennis neem en my saak verdedig; mag Hy my reg handhaaf deur my uit u hand te red. ” Toe Dawid hierdie woorde klaar vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Saul het hardop begin huil en vir Dawid gesê: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom? Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou. Lê dan nou vir my 'n eed af by die Here dat jy nie my nageslag ná my sal uitroei en my naam onder my familie sal uitdelg nie.” Dawid het toe vir Saul 'n eed afgelê, en Saul het na sy huis toe gegaan. Dawid en sy manne het egter na die bergskuiling opgegaan. Samuel het gesterf. Die hele Israel het byeengekom en oor hom gerou. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe. Dawid het gereedgemaak en na die Paranwoestyn afgegaan. Daar was 'n man in Maon wie se boerdery in Karmel was. Dié man was baie ryk. Hy het drieduisend skape en duisend bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape te skeer in Karmel. Die man se naam was Nabal en sy vrou se naam was Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand en 'n mooi voorkoms gehad; maar die man was hard en 'n boosdoener. Hy was 'n afstammeling van Kaleb. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer, het hy tien jong manne afgevaardig. Dawid het vir die jong manne gesê: “Gaan op na Karmel en gaan dan na Nabal. Vra namens my hoe dit met hom gaan en sê dan so, ‘Voorspoed! Vrede vir u! Vrede vir u huis en vir alles wat aan u behoort! Ek hoor nou dat hulle besig is om vir u te skeer. Wel, die herders wat aan u behoort, was saam met ons. Ons het hulle nie verneder nie, en hulle het niks vermis die hele tyd wat hulle in Karmel was nie. Vra maar vir u jong manne en hulle sal dit vir u bevestig. Laat my jong manne dan nou guns vind in u oë, want dit is 'n goeie dag waarop ons gekom het. Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.’ ” Die jong manne van Dawid het daar aangekom, aan Nabal al hierdie woorde namens Dawid oorgedra, en toe gewag. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat dros; amper elkeen loop weg van sy baas af. Moet ek nou my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?” Die jong manne van Dawid het in hulle spore omgedraai. Hulle het teruggegaan en toe hulle by Dawid aankom, het hulle al hierdie woorde aan hom oorgedra. Dawid sê toe vir sy manne: “Gord elkeen van julle sy swaard aan!” Elkeen het sy swaard aangegord, en ook Dawid het sy swaard aangegord. Ongeveer vierhonderd man het agter Dawid aan opgetrek, en tweehonderd het by die pakgoed gebly. Vir Abigajil, die vrou van Nabal, het een van die jong manne intussen berig gebring: “Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te groet, en hy het hulle uitgeskel. Maar die manne was baie goed vir ons. Ons is nie verneder nie, en het niks vermis nie, die hele tyd wat hulle saam met ons rondgetrek het toe ons in die veld was. Hulle was 'n muur om ons, snags sowel as bedags, die hele tyd wat ons by hulle was terwyl ons die skape oppas. Daarom, oorweeg dit en kyk wat u kan doen, want onheil wag op ons heer en sy hele huis. En hy is te veel van 'n skobbejak dat 'n mens met hom kan praat.” Abigajil het gou gemaak; sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf sea geroosterde graan, honderd blokke saamgeperste rosyne en twee honderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai. Sy sê toe vir haar diensmeisies: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter nie daarvan vertel nie. Terwyl sy op die donkie ry en onder die beskutting van die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis af in haar rigting, sodat sy hulle ontmoet. Dawid het gedink: “Ek het beslis pure verniet alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn opgepas, sodat daar niks van alles wat aan hom behoort, vermis geraak het nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. Mag God my, Dawid, swaar straf as ek van almal wat aan hom behoort, een mansmens tot môreoggend laat oorbly.” Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim, voor Dawid neergeval en diep neergebuig met haar gesig teen die grond. Sy het by sy voete neergeval en gesê: “Die blaam rus op my, my heer. Laat my, u dienares, asseblief direk met u praat en luister na die woorde van u dienares. My heer moet hom tog nie steur aan Nabal nie, daardie skobbejak van 'n man, want soos sy naam is, so is hy. Sy naam is Nabal, en die dwaasheid loop saam met hom. Maar ek, u dienares, het nie die jong manne van my heer, wat u gestuur het, gesien nie. En nou, my heer, so waar as die Here leef, en u leef – die Here, wat u daarvan weerhou het om by bloedskuld betrokke te raak deur met u eie hand 'n oorwinning vir uself te behaal – mag dit nou met u vyande en met hulle wat daarop uit is om my heer kwaad aan te doen, gaan soos met Nabal. En nou, wat hierdie buitengewone geskenk betref wat u slavin vir my heer gebring het, laat dit gegee word aan die jong manne wat in my heer se voetspore volg. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares. “Aangesien die Here beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig, omdat my heer die oorloë van die Here voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie! En wanneer mense opstaan om u te agtervolg en u lewe bedreig, mag die lewe van my heer dan toegebind wees in die sakkie van die lewendes by die Here, u God. Maar die lewens van u vyande, mag Hy dit wegslinger uit die holte van 'n slingervel. “ Wanneer die Here aan my heer al die goeie doen wat Hy oor u uitgespreek het, en Hy u aanstel as leier oor Israel, sal hierdie saak nie daar wees as 'n hindernis vir u en as 'n struikelblok in die gedagtes van my heer nie, dat u sonder rede onskuldige bloed vergiet het en dat my heer vir homself 'n oorwinning behaal het nie. En wanneer die Here aan my heer goed doen, moet u aan u dienares dink. ” Toe sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! Jou goeie oordeel moet geprys word, en jy moet geprys word, omdat jy my vandag daarvan weerhou het om in bloedskuld betrokke te raak en met my eie hand vir myself 'n oorwinning te behaal. Maar aan die ander kant, so waar as die Here, die God van Israel leef – Hy wat my daarvan weerhou het om jou kwaad aan te doen – sou daar, as jy my nie so gou tegemoetgekom het nie, sonder twyfel teen die môrelig nie 'n enkele mansmens van Nabal oorgebly het nie.” Dawid het toe dit wat sy vir hom gebring het, uit haar hand aanvaar en vir haar gesê: “Gaan in vrede op na jou huis. Kyk, ek het na jou geluister en ek is jou goedgesind. ” Toe Abigajil by Nabal kom, is hy sowaar besig met 'n feesmaal in sy huis, 'n feesmaal soos dié van 'n koning. Nabal was in 'n gemoedelike bui en hy was baie dronk. Sy het hom toe nie 'n woord, klein of groot, daaroor vertel voor ligdag die volgende oggend nie. Die volgende oggend, toe die wyn uit Nabal se lyf was, en sy vrou hom alles vertel, het sy hart in sy binneste gesterf, en hy het soos 'n klip geword. Ongeveer tien dae later het die Here Nabal getref, en is hy dood. Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Die Here moet geprys word, Hy wat die regstryd oor my bespotting deur Nabal gevoer het en sy dienskneg weerhou het van kwaad. Die kwaad van Nabal het die Here op sy eie kop laat neerkom.” Dawid het toe boodskappers gestuur om met Abigajil te praat om haar vir hom as vrou te neem. Dawid se dienaars het by Abigajil in Karmel gekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na u gestuur om u vir hom as vrou te neem.” Sy het opgestaan en diep neergebuig met haar gesig teen die grond en gesê: “Hier is u dienares om as slavin die voete van my heer se dienaars te was.” Abigajil het toe gou gereedgemaak en op 'n donkie vertrek met haar vyf diensmeisies wat haar volg. Sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword. Dawid het ook Aginoam uit Jisreël as vrou geneem. Albei van hulle het sy vroue geword. Maar Saul het Migal, sy dogter, die vrou van Dawid, vir Palti, seun van Lajis, wat uit Gallim was, gegee. Die Sifiete het by Saul in Gibea gekom en gesê: “Hou Dawid hom nie skuil op die heuwel van Hagila in die omgewing van Jesimon nie?” Saul het toe gereedgemaak en afgetrek na die woestyn van Sif. By hom was daar drieduisend man, uitgesoektes van Israel, om na Dawid in die woestyn van Sif te soek. Saul het op die heuwel van Hagila wat in die omgewing van Jesimon langs die pad lê, kamp opgeslaan. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy merk dat Saul agter hom aan is in die woestyn, het hy verkenners uitgestuur, en uit betroubare inligting agtergekom dat Saul daar aangekom het. Dawid het gereedgemaak en na die plek gegaan waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid sien toe die plek waar Saul en Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van sy leër, lê. Saul het in die oornagkamp gelê, en die manskappe het rondom hom gekamp. Daarop reageer Dawid toe en vra vir Agimeleg, die Hetiet, en vir Abisai, 'n seun van Seruja en broer van Joab: “Wie gaan saam met my af na Saul, na die kamp toe?” Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou afgaan.” Dawid en Abisai het in die nag tot by die manskappe gekom, en sowaar, daar lê Saul vas aan die slaap in die oornagkamp, met sy vegspies in die grond gesteek by sy kop, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. Abisai sê toe vir Dawid: “God het vandag jou vyand in jou hand oorgelewer. Laat ek hom tog nou met die vegspies in die grond vaspen met een steek. Ek sal dit nie 'n tweede keer hoef te doen met hom nie.” Maar Dawid sê vir Abisai: “Moet hom nie uitwis nie. Want wie kan sy hand teen die gesalfde van die Here uitsteek en onskuldig wees?” Verder sê Dawid: “So waar as die Here leef, die Here sal hom tref; óf sy dag sal kom en hy sal gewoon sterf, óf hy sal aftrek in die oorlog en weggevee word. Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit my hand teen die gesalfde van die Here lig! Maar vat nou die vegspies wat by sy kop is en die waterkruik, en laat ons padgee.” Dawid het die vegspies en die waterkruik by Saul se kop gevat, en hulle het padgegee. Niemand het iets gesien of iets agtergekom of wakker geword nie; maar almal van hulle was aan die slaap, omdat 'n diep slaap, beskik deur die Here, hulle oorval het. Dawid het oorgegaan na die oorkant en ver weg op die top van die heuwel gaan staan. Daar was 'n groot afstand tussen hulle. Dawid roep toe na die manskappe en na Abner, seun van Ner: “Antwoord jy dan nie, Abner?” Waarop Abner toe antwoord: “Wie is jy wat op die koning skreeu?” Dawid sê toe vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? En wie is jou gelyke in Israel? Waarom het jy dan nie jou heer, die koning, opgepas nie? Want een van die manskappe het ingekom om die koning, jou heer, uit te wis. Hierdie ding wat jy gedoen het, is nie goed nie. So waar as die Here leef, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het by julle heer, die gesalfde van die Here nie. Kyk nou 'n bietjie: Waar is die vegspies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was?” Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Waarop Dawid toe antwoord: “Dit is my stem, my heer die koning.” Verder sê hy: “Waarom agtervolg my heer sy dienaar? Ja, wat het ek gedoen? Watter kwaad kleef aan my hande? “ Daarom moet my heer die koning asseblief na die woorde van sy dienaar luister: As dit die Here is wat u teen my aangehits het, laat Hy die geur van 'n •graanoffer ruik. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my vandag verdryf, weg van deelname aan die erfenis van die Here deur te sê, ‘Gaan dien ander gode!’ Laat my bloed dan nou nie op die aarde val nie, ver van die teenwoordigheid van die Here. Want die koning van Israel het uitgetrek om na een vlooi te soek soos iemand wat agter 'n patrys aan is in die bergwêreld.” Toe sê Saul: “Ek het gesondig! Kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou nie meer kwaad aandoen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë. Kyk, ek het dwaas opgetree en die spoor heeltemal byster geraak.” Dawid het geantwoord en gesê: “Hier is die vegspies van die koning; laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. Die Here is die Een wat die mens beloon vir sy regverdigheid en sy getrouheid, die Here wat u vandag in my hand oorgegee het. Maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die Here uitsteek nie. Kyk, soos u lewe vandag kosbaar was in my oë, mag my lewe so kosbaar wees in die oë van die Here, en mag Hy my red uit alle nood.” Saul sê toe vir Dawid: “Mag jy geseënd wees, my seun Dawid. Jy sal nie net baie vermag nie, maar beslis ook seëvier.” Daarna het Dawid sy koers gegaan, en Saul het teruggekeer na sy woonplek. Dawid het vir homself gesê: “Nou gaan ek op 'n dag deur die hand van Saul weggevee word. Daar is vir my niks beter nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne. Dan sal Saul moed opgee oor my, om verder na my te soek in die hele gebied van Israel. Ek sal so aan sy hand ontvlug.” Dawid het toe gereedgemaak, en hy en die seshonderd man wat by hom was, het oorgegaan na Agis, seun van Maog, die koning van Gat. Dawid het toe by Agis in Gat gebly, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin, ook Dawid met sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel. Toe daar aan Saul berig gebring is dat Dawid na Gat gevlug het, het hy hom nie verder gesoek nie. Dawid het vir Agis gesê: “As ek guns gevind het in u oë, laat hulle vir my 'n plek gee in een van die buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom sou u dienaar in die koninklike stad by u woon?” Agis het dieselfde dag nog Siklag vir hom gegee. Daarom behoort Siklag aan die konings van Juda; dit is vandag nog so. Die tydperk wat Dawid in die gebied van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande. Dawid en sy manne het opgetrek en aanvalle geloods op die mense van Gesur; op die mense van Geser en op die Amalekiete. Ja, hulle was die inwoners van die land wat van altyd af gestrek het van die ingang na Sur tot by Egipteland. Wanneer Dawid 'n landstreek aanval, het hy geen man of vrou laat leef nie, maar hy het die kleinvee, beeste, donkies, kamele en klere geneem. Wanneer hy dan terugkeer en by Agis aankom, vra Agis: “Waar het julle vandag 'n aanval geloods?” Dawid sê dan: “In die Negev van Juda”, of “teen die mense van Jeragmeël in die Negev”, of “teen die Keniete in die Negev”. Dawid het geen man of vrou lewend na Gat geneem nie, want hy het gedink: Anders kan hulle inligting gee oor ons en sê: “So het Dawid gemaak.” Dit was sy gewoonte solank as wat hy in die Filistynse gebied gewoon het. Agis het Dawid vertrou, en gedink: “Hy het hom so afstootlik gedra by sy volk Israel dat hy vir altyd my dienaar sal wees.” Toe die Filistyne in daardie tyd hulle leërs byeenbring vir oorlog, om teen Israel te veg, het Agis vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan dat jy saam met my in die leër moet uittrek, jy en jou manne.” Dawid het Agis geantwoord: “In daardie geval sal u self agterkom wat u dienaar kan doen.” Waarop Agis toe vir Dawid sê: “Goed dan, ek stel jou aan as my permanente lyfwag.” Toe Samuel dood is, het die hele Israel oor hom gerou en hom begrawe in sy tuisdorp, in Rama. Saul het die oproepers van geeste en die waarsêers uit die land gesit. Die Filistyne het toe byeengekom. Hulle het die land binnegeval en kamp opgeslaan by Sunem. Saul het die hele Israel byeengebring, en hulle het kamp opgeslaan by Gilboa. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, was hy bang en het sy hart verskriklik gebewe. Saul het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die Urim, nóg deur die profete. Saul sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my 'n vrou wat mag het oor geeste, dat ek na haar kan gaan en haar kan raadpleeg.” Sy amptenare sê vir hom: “Kyk, daar is 'n vrou met 'n waarsêerput in En-Dor.” Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Hy gaan toe, hy en twee manne saam met hom, en kom in die nag by die vrou aan. Hy sê toe: “Tree asseblief vir my as voorspeller op deur die gees van 'n dooie. Laat vir my dié een opkom wat ek vir jou sal sê.” Die vrou sê egter vir hom: “Kyk, jy weet self wat Saul gedoen het, dat hy die oproepers van geeste en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom is jy besig om vir my 'n strik te stel om my dood te maak?” Maar Saul het vir haar 'n eed by die Here afgelê: “So waar as die Here leef, geen skuld sal op jou rus in hierdie saak nie.” Die vrou vra toe: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” Hy het gesê: “Laat Samuel vir my opkom.” Maar toe die vrou Samuel sien, het sy baie hard gegil. Die vrou sê toe vir Saul: “Waarom het u my mislei? U is dan Saul!” Toe sê die koning vir haar: “Moenie bang wees nie. Maar wat sien jy?” Die vrou het vir Saul gesê: “Ek sien 'n geestelike wese besig om uit die grond op te kom.” Hy vra haar toe: “Hoe lyk hy?” Sy het geantwoord: “'n Ou man is besig om op te kom, en hy het 'n mantel om hom.” Toe weet Saul dat dit Samuel is. Hy het gekniel met sy gesig na die grond en diep neergebuig. Samuel sê toe vir Saul: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” Saul het geantwoord: “Ek is baie benoud. Die Filistyne voer teen my oorlog en God het van my gewyk. Hy antwoord my nie meer nie, nóg deur die profete, nóg deur drome. Toe het ek u opgeroep om aan my te kenne te gee wat ek moet doen.” Toe sê Samuel: “En waarom raadpleeg jy my, as die Here van jou gewyk en jou teenstander geword het? Die Here het aan jou gedoen soos Hy deur my bekend gemaak het: Die Here het die koningskap uit jou hand geruk en dit aan jou medemens, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, en nie sy brandende toorn oor Amalek voltrek het nie, daarom doen die Here dit vandag aan jou. Die Here sal ook Israel saam met jou in die hand van die Filistyne oorgee. En môre sal jy en jou seuns by my wees. Ook die leër van Israel sal die Here in die hand van die Filistyne oorgee.” Saul het dadelik in sy volle lengte op die grond neergeval. Hy was angsbevange oor die woorde van Samuel. Daar was ook geen krag oor in hom nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Die vrou het na Saul gekom, en toe sy sien dat hy heeltemal verskrik is, sê sy vir hom: “Kyk, u slavin het na u geluister. Ek het my lewe in my hand geneem en u woorde wat u vir my gesê het, gehoorsaam. Luister u dan nou ook asseblief na u slavin. Laat ek 'n stukkie brood voor u neersit, sodat u kan eet. U moet krag hê, omdat u op u pad moet gaan.” Maar hy het geweier en gesê: “Ek gaan nie eet nie.” Sy dienaars en ook die vrou het egter by hom aangedring. Hy het toe na hulle geluister, van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit. Die vrou het by die huis 'n kalf op stal gehad, en sy het dit gou geslag. Sy het meel geneem, dit geknie en ongesuurde brood gebak. Sy het dit vir Saul en sy dienaars voorgesit en hulle het geëet. Hulle het gereedgemaak en dieselfde nag nog vertrek. Die Filistyne het hulle hele leër by Afek byeengebring, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël. Terwyl die Filistynse regeerders in eenhede van honderd en duisend verbytrek, het Dawid en sy manne heel agter saam met Agis verbygetrek. Die bevelvoerders van die Filistyne sê toe: “Wat van hierdie Hebreërs? ” Waarop Agis vir die Filistynse bevelvoerders sê: “Is dit nie Dawid, die dienaar van Saul, die koning van Israel, wat al 'n geruime tyd by my is nie? Ek kon niks teen hom vind nie, van die dag af dat hy oorgeloop het tot vandag toe.” Die bevelvoerders van die Filistyne het hulle bloedig vererg vir hom. Die Filistynse bevelvoerders het vir hom gesê: “Stuur die man terug! Hy moet teruggaan na sy plek wat jy aan hom toegewys het. Hy mag nie saam met ons aan die geveg deelneem nie, sodat hy nie in die geveg ons teenstander word nie. Waarmee sal dié man homself weer vir sy heer aanvaarbaar maak? Is dit nie met die koppe van hierdie manne nie? Is dit dan nie Dawid, vir wie hulle in hulle kringdanse sing nie? “ ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ ” Agis het Dawid toe ontbied en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is opreg. Dit is goed in my oë dat jy saam met my in die oorlog uittrek en terugkeer; want ek het niks verkeerds in jou gevind nie, van die dag af dat jy by my aangekom het tot vandag toe. Maar in die oë van die Filistynse regeerders is jy nie goed nie. Draai dan nou om en gaan in vrede, en moet niks verkeerds doen in die oë van die Filistynse regeerders nie.” Toe sê Dawid vir Agis: “Maar wat het ek gedoen? En wat het u in u dienaar gevind, van die dag af dat ek by u teenwoordig is tot vandag toe, dat ek nie mag gaan en veg teen die vyande van my heer die koning nie?” Agis antwoord toe en sê vir Dawid: “Ek weet dit. Ja, jy is in my oë so goed soos 'n boodskapper van God; maar die Filistynse bevelvoerders het gesê, ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’ Staan nou môre vroeg op, jy en die dienaars van jou heer wat saam met jou gekom het. Julle moet vroeg môre opstaan, en as dit lig genoeg is, moet julle vertrek.” Dawid het toe vroeg opgestaan, hy en sy manne, om in die oggend te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne. Toe het die Filistyne opgeruk na Jisreël. Toe Dawid en sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n strooptog uitgevoer in die Negev en in Siklag. Hulle het Siklag aangeval en afgebrand. Hulle het die vroue wat daarin was, weggevoer, van die kleinste tot die grootste. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar hulle voor hulle uit aangejaag en padgegee. Toe Dawid en sy manne by die dorp aankom – daar is die dorp afgebrand en die vroue en seuns en dogters weggevoer! Dawid en die manskappe by hom het hard begin skreeu en gehuil totdat daar nie meer krag in hulle oor was om te huil nie. Die twee vroue van Dawid, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer. Dawid was erg in die noute, want die manskappe het gedreig om hom te stenig. Al die manskappe was immers bitter ontsteld, elkeen oor sy seuns en dogters. Maar Dawid het krag gevind by die Here sy God. Dawid sê toe vir Abjatar, die priester, seun van Agimeleg: “Bring asseblief vir my die efod nader.” Abjatar het die efod na Dawid gebring, en Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie rowerbende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Die Here het vir hom gesê: “Jy moet, want jy sal hulle beslis inhaal en jy sal beslis jou mense red.” Dawid het toe vertrek, hy en die seshonderd man by hom; en toe hulle by die dal van Besor kom, het die wat agter geraak het, daar agtergebly. Maar Dawid het die agtervolging voortgesit, hy en vierhonderd man, terwyl tweehonderd man wat te uitgeput was om die dal van Besor oor te steek, agtergebly het. Hulle kry toe 'n Egiptenaar in die veld en neem hom na Dawid. Hulle het vir hom brood gegee, en hy het geëet. Hulle het hom ook water gegee om te drink. Toe gee hulle vir hom 'n skyf saamgeperste droë vye en twee blokke saamgeperste rosyne. Hy het dit geëet en sy lewenskrag het teruggekeer, want hy het drie dae en drie nagte lank nie brood geëet of water gedrink nie. Dawid vra hom toe: “By wie hoort jy, en waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Ek is 'n jong man van Egipte, die slaaf van 'n Amalekiet. My heer het my agtergelaat, omdat ek drie dae gelede siek geword het. Ons het 'n strooptog uitgevoer in die Negev van die Kretensers, en in die Negev wat aan Juda behoort, en in die Negev van Kaleb; en ons het Siklag afgebrand.” Toe vra Dawid hom: “Sal jy my af neem na hierdie rowerbende?” Hy het geantwoord: “Sweer eers vir my by God dat u my nie sal doodmaak nie, en dat u my nie sal oorlewer in die hand van my heer nie, dan sal ek u af neem na hierdie rowerbende.” Hy het hom af geneem, en daar is hulle toe, versprei oor die hele gebied, besig om te eet en te drink en fees te vier met die hele groot buit wat hulle uit die gebied van die Filistyne en die gebied van Juda geneem het. Dawid het hulle aangeval, van ligdag af tot die aand van die volgende dag. Niemand van hulle het ontkom nie, behalwe vierhonderd jong manne wat op kamele geklim en gevlug het. Dawid het alles wat die Amalekiete gevat het, teruggevat. Dawid het ook sy twee vroue gered. Niks van wat aan hulle behoort, is vermis nie, klein of groot, seun of dogter, of enigiets van die buit nie – alles wat die bende vir hulle gevat het, dit alles het Dawid teruggebring. Dawid het ook op al hulle kleinvee en beeste beslag gelê. Die manne het dit voor die ander vee aangejaag en gesê: “Dit is Dawid se buit.” Toe Dawid by die tweehonderd manne aankom wat te moeg was om Dawid te volg en vir wie hulle in die dal van Besor agtergelaat het, het hulle Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoetgegaan. Toe Dawid by die manskappe kom, het hy gevra hoe dit met hulle gaan. Maar al die slegtes en deugniete onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, het gereageer en gesê: “Omdat hulle nie saam met ons gegaan het nie, sal ons nie vir hulle van die buit gee wat ons teruggevat het nie; behalwe elkeen se vrou en kinders – dié mag hulle weglei, en dan moet hulle gaan.” Maar Dawid het gesê: “My broers, julle mag nie so maak met wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons beskerm en die rowerbende wat teen ons te staan gekom het, in ons hand gegee. Wie sal na julle luister in hierdie saak? Want die deel van die een wat aan die geveg deelneem, is dieselfde as die deel van die een wat by die pakgoed bly; hulle deel gelykop.” Van daardie dag af en verder was dit toe so. Hy het dit as 'n vaste reël en gebruik vir Israel neergelê; dit is vandag nog so. Toe Dawid by Siklag aankom, het hy, as 'n vriend, van die buit vir die oudstes van Juda gestuur met die woorde: “Hier is 'n buitengewone geskenk vir julle uit wat gebuit is van die Here se vyande.” Hy het dit gestuur aan dié wat in Bet-El, in Ramot in die Negev en in Jattir is, aan dié wat in Aroër, in Sifmot en in Estemoa is, aan dié wat in Ragal, aan dié wat in die dorpe van Jeragmeël se mense en in die dorpe van die Keniete is, en aan dié wat in Gorma, in Bor-Asan en in Atag is, en aan dié wat in Hebron is – al die plekke waar Dawid rondgetrek het, hy en sy manne. Intussen het die Filistyne teen Israel geveg en die manne van Israel het voor die Filistyne uit gevlug; die gesneuweldes het op die berg van Gilboa gelê. Die Filistyne het op Saul en sy seuns se hakke gebly en hulle het Jonatan, Abinadab en Malkisua, Saul se seuns, neergevel. Die geveg het verhewig teen Saul, en toe die skutters, die manne met die boog, op hom afkom, het hy onbedaarlik gebewe vir die boogskutters. Saul sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes, en deurboor my en martel my.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was angsbevange. Toe vat Saul sy swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val ook hy in sy swaard en sterf saam met hom. So het Saul, sy drie seuns en sy wapendraer, asook al sy manne, op daardie dag saam gesterf. Toe die manne van Israel wat oorkant die vallei was, en dié wat oorkant die Jordaan was, sien dat die manne van Israel gevlug het, en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle die dorpe verlaat en gevlug. Die Filistyne het toe gekom en daar gaan woon. Die volgende dag, toe die Filistyne kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns waar hulle op die berg van Gilboa lê. Hulle het sy kop afgekap en hom van sy wapens gestroop. Hulle het boodskappers in die land van die Filistyne rondgestuur om in die tempels van hulle afgode en aan die volk die goeie nuus te bring. Hulle het sy wapens in die tempel van die Astartes neergesit, maar sy lyk het hulle teen die muur van Bet-San vasgeslaan. Toe die inwoners van Jabes in Gilead dit hoor – wat die Filistyne Saul aangedoen het – het al die bekwame manne gereedgemaak en die hele nag lank geloop. Hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San verwyder, na Jabes gegaan en hulle daar verbrand. Toe het hulle hulle beendere geneem en dit onder die tamarisk by Jabes begrawe. Hulle het sewe dae lank gevas. Ná die dood van Saul het Dawid teruggekom van sy oorwinning oor die Amalekiete. Dawid het twee dae lank in Siklag gebly. Op die derde dag kom daar onverwags 'n man van Saul af, van die leër af. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het hy op die grond neergeval en diep neergebuig. Dawid vra hom toe: “Waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Van die leër van Israel af – ek het ontvlug.” Dawid sê vir hom: “Wat het gebeur? Vertel my, asseblief!” Hy sê toe dat die manskappe uit die geveg gevlug het, dat ook baie van die manskappe geval en gesterf het, en dat selfs Saul en sy seun Jonatan dood is. Dawid vra toe vir die jong man wat die berig vir hom bring: “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” Die jong man sê toe: “Ek was heel toevallig op die berg van Gilboa, en sowaar, daar leun Saul op sy vegspies, terwyl die strydwaens en die perderuiters al op hom is! Toe hy omdraai en my sien, roep hy na my. Ek het geantwoord, ‘Ek is tot u diens!’ Hy vra my toe, ‘Wie is jy?’ En ek antwoord hom, ‘Ek is 'n Amalekiet.’ Toe sê hy vir my, ‘Kom staan tog hier by my en maak my dood, want 'n duiseligheid oorval my, al is daar nog lewe in my.’ Ek het by hom gaan staan en hom doodgemaak, want ek het geweet dat hy nie sou leef as hy eers geval het nie. Ek het die kroon wat op sy kop was en die armband wat aan sy arm was, geneem, en dit hierheen vir my heer gebring.” Dawid het sy klere gegryp en dit geskeur; so ook al die manne wat by hom was. Hulle het gerou en gehuil, en tot die aand gevas oor Saul en sy seun Jonatan, en oor die manskappe van die Here en die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard geval het. Dawid het vir die jong man wat die berig vir hom gebring het, gevra: “Waar is jy vandaan?” Hy het gesê: “Ek is die seun van 'n •vreemdeling, 'n Amalekiet.” Daarop sê Dawid vir hom: “Hoe is dit dan dat jy nie eers bang was om jou hand uit te steek en die gesalfde van die Here te vernietig nie?” Dawid roep toe een van die jong manne en sê: “Kom hier! Val hom aan!” Hy het toe die man neergevel, en hy het gesterf. Dawid het nog vir die Amalekiet gesê: “Jou bloed is op jou kop, want jou eie mond het teen jou getuig toe jy gesê het, ‘Ek het self die gesalfde van die Here doodgemaak.’ ” Daarna het Dawid hierdie treurlied gesing oor Saul en sy seun Jonatan. Hy het die nageslag van Juda aangesê om dit, Die Booglied, te leer. Kyk, dit staan geskryf in die Boekrol van die Opregte. “Die uitnemendste, o Israel, lê deurboor op jou hoogtes. Hoe het die helde geval! “Maak dit nie in Gat bekend nie, versprei die nuus nie in die strate van Askelon nie; anders verheug die dogters van die Filistyne hulle, anders jubel die dogters van die onbesnedenes. “Berge by Gilboa, mag daar geen dou, geen reën op julle val nie, mag daar nie landerye wees wat •wydingsgeskenke lewer nie. Want daar is die skilde van helde besoedel, die skild van Saul, sonder dat dit gesalf is met olie. “Vir die bloed van gesneuweldes, vir die vet van helde, het die boog van Jonatan nooit teruggedeins nie; die swaard van Saul het nooit leeg teruggekeer nie. “Saul en Jonatan, geliefd en innemend, is in lewe en dood nie geskei nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus. “Dogters van Israel, huil oor Saul, hy wat julle in karmosynrooi geklee, met juwele versier het, wat julle klere met goue juwele getooi het. “Hoe het die helde geval midde in die stryd! Jonatan is op jou hoogtes deurboor. Ek is terneergedruk oor jou, Jonatan, my broer. Jy was baie dierbaar vir my. Wonderlik was jou liefde vir my, nog meer as die liefde van vroue. “Hoe het die helde geval, en is die oorlogswapens verloor!” Daarna het Dawid die Here geraadpleeg: “Moet ek optrek na een van die stede van Juda?” Die Here het vir hom gesê: “Trek op!” Toe vra Dawid: “Waarheen moet ek optrek?” Hy het geantwoord: “Na Hebron. ” Dawid en ook sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, het daarheen opgetrek. En wat sy manne by hom betref, Dawid het hulle laat optrek, elkeen met sy huisgesin; en hulle het in die dorpies by Hebron gaan bly. Die manne van Juda het gekom en Dawid daar as koning gesalf oor die huis van Juda. Hulle het Dawid ingelig en gesê: “Dit is die manne van Jabes in Gilead wat vir Saul begrawe het.” Dawid het toe boodskappers na die manne van Jabes in Gilead gestuur en hulle laat weet: “Mag julle deur die Here geseën word, omdat julle hierdie trou bewys het aan julle heer, aan Saul, en hom begrawe het. Mag die Here dan nou aan julle guns en trou bewys. Ook ek sal julle beloon vir hierdie daad wat julle gedoen het. Skep nou moed en wees onverskrokke, al is julle heer Saul dood. Net nog dit: Hulle, die huis van Juda, het my gesalf as koning oor hulle.” Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Saul, het egter Saul se seun Is-Boset geneem en hom na Maganajim laat oorgaan. Hy het hom koning gemaak oor Gilead, die Asuriete en Jisreël, en ook oor Efraim en Benjamin – oor die hele Israel. Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning geword het oor Israel, en hy het twee jaar regeer. Net die huis van Juda het Dawid gesteun. Dawid was in Hebron koning oor die huis van Juda vir 'n tydperk van sewe jaar en ses maande. Abner, seun van Ner, en die volgelinge van Saul se seun Is-Boset het van Maganajim af uitgetrek na Gibeon. Joab, seun van Seruja, en die volgelinge van Dawid het ook uitgetrek en hulle by die dam by Gibeon teëgekom. Die een groep het aan die een kant van die dam gaan sit en die ander groep aan die ander kant van die dam. “Laat die jong manne bietjie opstaan en voor ons kragte meet,” sê Abner toe vir Joab; waarop Joab antwoord: “Laat hulle opstaan.” Hulle het opgestaan en is in die verbykom afgetel: twaalf vir Benjamin – dit was vir Saul se seun Is-Boset – en twaalf van Dawid se volgelinge. Elkeen het sy teenstander aan die kop beetgekry en sy swaard in die ander se sy gesteek. Saam het hulle geval. Daarom word daardie plek wat by Gibeon is, die veld van Hassurim genoem. Die geveg was daardie dag besonder straf, maar Abner en die manne van Israel is verslaan deur die volgelinge van Dawid. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was so vlug van voet soos een van die gaselle in die veld. Asael is agter Abner aan. Hy het nie links of regs afgewyk in sy agtervolging van Abner nie. Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?” Hy sê toe: “Dit is ek!” Abner sê toe vir hom: “Draai links of regs weg, en pak een van die jong manne! Vat vir jou sy wapenrusting!” Maar Asael wou nie van agter hom wegdraai nie. Abner sê toe weer vir Asael: “Gee pad hier agter my! Waarom moet ek jou platslaan? Hoe sal ek dan jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterkant van die vegspies in die maag, sodat die vegspies by sy rug uitkom. Hy het net daar geval en op die plek gesterf. Daarna het almal wat aangekom het by die plek waar hy geval en gesterf het, gaan staan. Maar Joab en Abisai het Abner agternagesit. Toe die son besig was om onder te gaan, kom hulle by die Amma-heuwel, wat oos van Giag lê, op pad na die woestyn van Gibeon. Die manne van Benjamin het in een groep agter Abner stelling ingeneem. Hulle het op die top van 'n heuwel gaan staan. Abner roep toe na Joab. Hy het gesê: “Moet die swaard dan vir altyd verteer? Besef jy nie dat dit uiteindelik net bitterheid bring nie? Gaan jy dan nooit vir die manskappe sê om die agtervolging van hulle broers te staak nie?” Joab antwoord toe: “So waar as God leef, as jy nie gepraat het nie, sou die manskappe almal eers teen die môre teruggeval het van die gejaag agter hulle broers aan.” Joab het daarna op die •ramshoring geblaas, en al die manskappe het gaan staan. Hulle het nie meer die Israeliete agtervolg nie, en ook nie verder geveg nie. Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Araba getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek, die hele voormiddag getrek en in Maganajim aangekom. Joab het teruggekeer van sy agtervolging van Abner en al die manskappe byeengebring. Van die volgelinge van Dawid het negentien man en Asael ontbreek. Maar die volgelinge van Dawid het onder die Benjaminiete 'n slagting aangerig: Van die manne van Abner was driehonderd-en-sestig dood. Hulle het Asael gedra en hom in sy vader se graf wat by Betlehem is, neergelê. Joab en sy manne het daarna die hele nag getrek, en toe dit lig word, was hulle in Hebron. Daar was 'n uitgerekte stryd tussen die huis van Saul en die huis van Dawid. Dawid het al hoe sterker geword en die huis van Saul al hoe swakker. Vir Dawid is daar seuns gebore in Hebron. Sy eersgeborene was Amnon, by Aginoam, die vrou uit Jisreël; die tweede was Kilab, by Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel; die derde was Absalom, die seun van Maäga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur; die vierde was Adonia, die seun van Gaggit; die vyfde was Sefatja, die seun van Abital; die sesde was Jitream, by Dawid se vrou Egla. Hierdie seuns is vir Dawid in Hebron gebore. Terwyl die stryd tussen die huis van Saul en die huis van Dawid voortgeduur het, het Abner sy posisie in die huis van Saul versterk. Saul het 'n byvrou gehad met die naam Rispa, dogter van Aja. Is-Boset sê toe vir Abner: “Waarom het jy by my pa se byvrou ingegaan?” Abner was baie kwaad oor die woorde van Is-Boset. Hy sê toe: “Is ek dan 'n hond wat aan Juda behoort? Vandag nog bewys ek trou aan die huis van Saul, jou pa, aan sy familie en sy vriende. Ek het jou nie in die hand van Dawid laat beland nie, en jy roep my vandag tot verantwoording oor 'n misstap met hierdie vrou! Mag God my, Abner, swaar straf as ek nie vir Dawid presies doen wat die Here hom met 'n eed beloof het nie – om die koningskap van die huis van Saul af na hom te laat oorgaan, en om die troon van Dawid oor Israel en Juda te vestig van Dan tot Berseba.” Is-Boset kon Abner nie met 'n verdere woord antwoord nie, want hy was bang vir hom. Abner het daarna boodskappers na Dawid gestuur om namens hom te vra, “Aan wie behoort die land eintlik?” en ook om te sê: “Sluit 'n ooreenkoms met my; kyk, dan sal ek met jou saamwerk om die hele Israel na jou oor te haal.” “Dis goed,” het Dawid gesê. “Ek sal self met jou 'n ooreenkoms sluit. Daar is egter een saak wat ek van jou vra: Jy kry my nie te sien nie, tensy jy Migal, die dogter van Saul, saambring wanneer jy kom om my te sien.” Dawid het toe boodskappers na Is-Boset, Saul se seun, gestuur om vir hom te sê: “Oorhandig my vrou, Migal, wat ek met honderd voorhuide van Filistyne vir my as verloofde verkry het.” Is-Boset het haar laat haal by haar man, by Paltiël, seun van Lajis. Haar man het saam met haar geloop, al huilende agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom, “Gaan terug!” en hy het teruggegaan. Die boodskap van Abner aan die oudstes van Israel was: “Vir 'n geruime tyd al wou julle Dawid as koning oor julle hê. Tree dan nou op, want die Here het aan Dawid gesê, ‘Deur die hand van my dienskneg Dawid sal Ek my volk Israel verlos uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande.’ ” Abner het ook persoonlik met die mense van Benjamin onderhandel. Daarna het hy self gegaan om aan Dawid in Hebron alles oor te dra wat vir die Israeliete en vir die hele huis van Benjamin aanvaarbaar is. Abner het by Dawid in Hebron aangekom met twintig man by hom. Dawid het vir Abner en die manne wat by hom was, 'n feesmaal voorberei. Abner sê toe vir Dawid: “Ek wil gereedmaak en gaan; ek wil die hele Israel by my heer die koning byeenbring, sodat hulle met u 'n ooreenkoms kan sluit, en sodat u oor alles wat u hart begeer, kan regeer.” Dawid het Abner weggestuur en hy het in vrede vertrek. Juis toe het Joab en die volgelinge van Dawid teruggekom van 'n strooptog af. Hulle het baie buit met hulle saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie, want Dawid het hom weggestuur, en hy het in vrede vertrek. Toe Joab en die hele leër wat by hom was, daar aankom, het die mense vir Joab vertel: “Abner, seun van Ner, het na die koning toe gekom, maar die koning het hom laat gaan, en hy is in vrede hier weg.” Joab gaan toe na die koning en sê: “Wat het jy gedoen? Abner het sowaar na jou toe gekom; waarom het jy hom dan laat gaan? Hy het nou weggekom. Jy ken Abner, seun van Ner: Dit is om jou om die bos te lei dat hy gekom het, om te wete te kom wat jou bewegings is en om uit te vind wat jy alles doen.” Joab het van Dawid af vertrek en boodskappers agter Abner aan gestuur. Hulle het hom van die opgaarput by Sira af teruggebring. Dawid het dit egter nie geweet nie. Toe Abner na Hebron terugkeer, het Joab hom eenkant toe geneem in die stadspoort om vertroulik met hom te praat. Daar het hy hom in die maag gesteek. Hy het gesterf oor die bloed van Asael, Joab se broer. Toe Dawid agterna daarvan hoor, het hy gesê: “Ek en my koninkryk is by die Here vir altyd onskuldig aan die bloed van Abner, seun van Ner. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy vader se hele familie. Mag daar in Joab se familie nooit iemand ontbreek wat 'n afskeiding of 'n velsiekte het, of 'n man wat 'n spinspoel vashou, of deur die swaard val, of broodgebrek ly nie.” Joab en sy broer Abisai het Abner immers om die lewe gebring omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het in die geveg by Gibeon. Dawid het vir Joab en al die manskappe wat by hom was, gesê: “Skeur julle klere, trek rouklere aan en weeklaag voor Abner uit.” Koning Dawid het agter die draagbaar geloop. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by Abner se graf. Al die manskappe het ook gehuil. Die koning het 'n klaaglied gesing vir Abner. Hy het gesê: “Moes Abner die dood van 'n dwaas sterf? Jou hande – dit was nie vasgebind nie; en jou voete – naby bronskettings het dit nie gekom nie. Soos een wat voor skurke val, het jy geval.” Toe het al die manskappe nog meer oor hom gehuil. Al die manskappe het gekom om vir Dawid brood aan te bied terwyl dit nog dag was. Maar Dawid het 'n eed afgelê: “Mag God my swaar straf as ek aan brood of enigiets proe voordat die son ondergaan!” Al die manskappe het daarvan kennis geneem en dit goedgevind. Alles wat die koning gedoen het, het al die manskappe se goedkeuring weggedra. Al die manskappe en die hele Israel het daardie dag besef dat dit nie 'n opdrag van die koning was om Abner, seun van Ner, dood te maak nie. Die koning het vir sy dienaars gesê: “Besef julle nie dat 'n •aanvoerder en groot man op hierdie dag in Israel geval het nie? Maar ek is vandag magteloos, alhoewel ek die gesalfde koning is. Hierdie manne, die seuns van Seruja, is te gewelddadig vir my. Mag die Here die een wat kwaad doen, vergeld volgens die kwaad wat hy doen. ” Toe Saul se seun, Is-Boset, hoor dat Abner gesterf het in Hebron, het hy moed verloor. Die hele Israel was angsbevange. Twee manne, die •aanvoerders van roofbendes, was by Saul se seun. Die een se naam was Baäna en die ander een se naam was Regab. Hulle was seuns van Rimmon, 'n man van Beërot, een van die Benjaminiete. Ja, ook Beërot word as deel van Benjamin gereken. Die mense van Beërot het na Gittajim gevlug. Daar is hulle •vreemdelinge; dit is vandag nog so. Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met misvormde voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan hulle uit Jisreël bereik het. Sy oppasser het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas om weg te kom, het die seuntjie geval en kreupel geword. Sy naam was Mefiboset. Regab en Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, het geloop en op die hitte van die dag by Is-Boset se huis aangekom. Hy was juis besig om sy middagslapie te geniet. Daar het hulle die huis binnegegaan – gewoonlik het hulle koring gaan haal – en hom in die maag gesteek. Regab en Baäna, sy broer, het verbygeglip en die huis binnegegaan terwyl Is-Boset in sy slaapkamer op sy bed gelê het. Hulle het hom gesteek en doodgemaak, sy kop afgekap en dit saamgevat. Hulle het die hele nag met die pad van die Araba langs geloop en Is-Boset se kop vir Dawid in Hebron gebring. Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het. Die Here het op hierdie dag vir my heer die koning wraak geneem op Saul en sy nageslag.” Dawid het Regab en sy broer Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, geantwoord en vir hulle gesê: “So waar as die Here leef, Hy wat my lewe uit alle nood gered het – die een wat vir my 'n berig gebring het, ‘Kyk, Saul is dood!’ terwyl hy gedink het hy bring goeie nuus, het ek gegryp en hom om die lewe gebring by Siklag, hom aan wie ek eintlik die loon van 'n boodskapper moes gee. Hoeveel te meer sal ek, wanneer goddelose manne 'n regverdige man in sy huis op sy bed vermoor, nie nou sy bloed van julle hande eis en julle van die aarde af verdelg nie?” Dawid het die jong manne opdrag gegee, en hulle het hulle om die lewe gebring. Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle by die dam by Hebron opgehang. Is-Boset se kop het hulle geneem en dit in Abner se graf by Hebron gesit. Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal 'n leier word oor Israel.’ ” Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die Here 'n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank. Die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan, na die Jebusiete wat in dié gebied gewoon het. Die Jebusiete het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie! Selfs blindes en kreupeles sal jou afweer deur te sê, ‘Dawid sal hier nie inkom nie!’ ” En tog het Dawid die vesting van Sion, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. Dawid het daardie dag gesê: “Elkeen wat die Jebusiete wil verslaan, moet deur die watertonnel kruip om die kreupeles en blindes by te kom, hulle wat veragtelik is vir Dawid.” Daarom word daar gesê: “'n Blinde en 'n kreupele mag nie die huis binnekom nie.” Dawid het in die vesting gaan woon en dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het rondom bouwerke opgerig, van die terrasse af na binne. Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, die God van alle magte, was met hom. Hiram, die koning van Tirus, het gesante na Dawid gestuur, asook sederhout, skrynwerkers en klipmesselaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou. Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het en dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel. Dawid het nog byvroue en vroue uit Jerusalem geneem nadat hy uit Hebron daar aangekom het. Daar is toe vir Dawid nog seuns en dogters gebore. Dit is die name van die kinders wat vir hom in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan en Salomo; Jibgar, Elisua, Nefeg en Jafia; Elisama, Eljada en Elifelet. Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek; maar Dawid het daarvan te hore gekom en afgegaan na die bergvesting. Die Filistyne het gekom en die vallei van Refaïm beset. Dawid het by die Here raad gesoek: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my hand gee?” Die Here het vir Dawid gesê: “Trek op, want Ek sal beslis die Filistyne in jou hand gee.” Dawid het in Baäl-Perasim aangekom en hulle daar verslaan. Dawid het gesê: “Die Here het deur my vyande voor my gebreek soos water deurbreek.” Daarom het hy daardie plek Baäl-Perasim genoem. Die Filistyne het hulle afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit saamgeneem. Die Filistyne trek toe weer op en beset die vallei van Refaïm. Toe Dawid die Here raadpleeg, het Hy gesê: “Moenie van voor teen hulle optrek nie; trek agter hulle om en val hulle aan voor die balsempopuliere. Sodra jy die geluid van 'n opmars in die toppe van die balsempopuliere hoor, moet jy toeslaan; want dan gaan die Here voor jou uit om die leër van die Filistyne te verslaan.” Dawid het gemaak soos die Here hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Geba af tot by Geser. Dawid het weer al die uitgesoekte manne in Israel byeengebring, dertigduisend van hulle. Dawid en al die manskappe wat by hom was, het toe gereedgemaak en na Baäla in Juda vertrek om daarvandaan die ark van God te bring, die ark waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, wat troon op die gerubs. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gelaai, nadat hulle dit uit die huis van Abinadab, wat op die heuwel is, gedra het. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die nuwe wa begelei, met die ark van God daarop. Agjo het voor die ark geloop. Dawid en die hele huis van Israel was uitbundig voor die Here met die klank van allerlei instrumente van sipreshout, en met liere, harpe, tamboeryne, sistrums en simbale. Toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgegryp, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand, en God het hom net daar getref oor dié oneerbiedigheid. Hy het daar by die ark van God gesterf. Dawid was ontsteld daaroor dat die Here Ussa stukkend gebreek het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is vandag nog die naam. Dawid het daardie dag bang geword vir die Here, en hy het gesê: “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” Dawid wou toe nie die ark van die Here na hom by die Stad van Dawid laat afdraai nie. Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, 'n man uit Gat, laat wegdraai. Die ark van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die man uit Gat, gebly. Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën. Aan koning Dawid is berig gebring: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God.” Dawid het toe gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid geneem. Wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer. Dawid self het met volle oorgawe gedans voor die Here. Dawid het 'n efod van linne aangehad, en hy en die hele huis van Israel het met uitroepe van vreugde en die geluid van •ramshorings die ark van die Here na die Stad van Dawid opgeneem. Toe die ark van die Here die Stad van Dawid binnekom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid gesien spring en dans voor die Here. Sy het hom in haar hart verag. Hulle het die ark van die Here ingeneem en dit op sy plek neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Toe het Dawid •brandoffers en •maaltydoffers voor die Here gebring. Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte. Hy het aan die hele volk, die hele menigte van Israel, aan man en vrou, aan elkeen, 'n ringbrood, 'n dadelkoek en 'n rosynekoek uitgedeel. Daarna is die hele volk, elkeen van hulle, terug na sy huis. Toe Dawid teruggaan om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid buite tegemoetgegaan en gesê: “Hoe eerbaar het die koning van Israel hom vandag nie gedra nie! Dat hy hom vandag voor die oë van die slavinne van sy amptenare ontbloot het soos enige leeglêer hom sou ontbloot!” Dawid het vir Migal gesê: “Dit was voor die Here, wat my gekies het bo jou pa en sy hele familie, deur my aan te stel as leier oor die volk van die Here, oor Israel. Ek sal voor die Here uitbundig wees, al verneder ek my nog verder. Ek mag laag daal in jou oë, maar by die slavinne waarvan jy gepraat het, by hulle wil ek graag geëer wees.” En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood nie 'n kind gehad nie. Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die Here hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die Here is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die Here het tot Natan gekom: “Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die Here: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ” Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “ ‘ “Die Here maak aan jou bekend dat Hy, die Here, 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ” Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, Here, my Heer; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, Here, my Heer, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms, en dit as voorskrif vir mense, Here, my Heer. Maar wat kan Dawid verder vir U sê? U ken self u dienskneg, Here, my Heer. Ter wille van u belofte en volgens u wil het U hierdie hele groot saak so bewerk dat dit aan u dienskneg bekend kon word. Daarom, U is groot, Here, my Heer; ja, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir Homself naam te maak deur aan hulle grootse en wonderlike dade te doen, en aan u land, ter wille van u volk wat U vir U vrygekoop het van Egipte, van die nasies en die gode van Egipte? U het u volk Israel vir U as volk gevestig vir altyd. U, Here, U het hulle God geword. Here, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het, sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die Here, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, want U, Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’ Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. En nou, Here, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaar. U het hierdie goeie woord oor u dienskneg uitgespreek. Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, Here, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.” Daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle verneder; Dawid het Meteg-Amma uit die beheer van die Filistyne geneem. Hy het ook die Moabiete verslaan en hulle met 'n maatlyn afgemeet terwyl hy hulle op die grond laat lê het: Hy het twee maatlyne afgemeet om te bepaal wie doodgemaak moet word, en een volle maatlyn om te bepaal wie moet bly lewe. Die Moabiete het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Dawid het ook Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe dié gegaan het om sy beheer oor die gebied langs die Eufraatrivier te herstel. Dawid het van hom eenduisend sewehonderd van die strydwabemanning en twintigduisend voetsoldate gevange geneem. Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgekap; hy het net honderd van die trekperde laat oorbly. Toe die Arameërs van Damaskus vir Hadad-Eser, die koning van Soba, te hulp kom, het Dawid twee-en-twintigduisend man uit Aram neergevel. Dawid het by die Arameërs van Damaskus wagposte geplaas. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het. Dawid het die rondeskilde van goud wat die dienaars van Hadad-Eser by hulle gehad het, gevat en dit na Jerusalem gebring. Uit Betag en Berotai, stede van Hadad-Eser, het koning Dawid besonder baie brons gevat. Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser verslaan het, het Toï sy seun Joram na koning Dawid gestuur om te vra hoe dit met hom gaan en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak en hom verslaan het, want Hadad-Eser was altyd in gevegte gewikkel met Toï. Joram het voorwerpe van silwer, goud en brons saamgebring. Ook dit het koning Dawid aan die Here gewy; dit was saam met die silwer en goud wat hy gewy het, afkomstig van al die nasies wat hy onderwerp het – van Aram, Moab, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete. Daarby was ook van die buit van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba. So het Dawid naam gemaak. Toe hy teruggekeer het nadat hy die Edomiete verslaan het in die Soutvallei – agttienduisend van hulle – het hy in Edom wagposte geplaas. In die hele gebied van die Edomiete het hy wagposte geplaas, en al die Edomiete het Dawid se onderdane geword. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het. Dawid het oor die hele Israel regeer, en hy het vir sy hele volk gedoen wat reg en billik is. Joab, seun van Seruja, was in bevel van die leër, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. Sadok, seun van Agitub, en Agimeleg, seun van Abjatar, was priesters; Seraja was sekretaris, en Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die Kreti en Pleti. Dawid se seuns was priesters. Dawid het gevra: “Is daar nog enigiemand oor van die huis van Saul, sodat ek aan hom guns kan bewys ter wille van Jonatan? ” Daar was 'n dienaar van Saul se huishouding met die naam Siba. Hulle het hom na Dawid ontbied. Die koning het vir hom gevra, “Is jy Siba?” waarop hy geantwoord het: “Ek is u dienaar.” Die koning vra toe: “Is daar nog enigiemand oor van die huis van Saul, sodat ek aan hom guns kan bewys, soos ek voor God beloof het? ” Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog 'n seun van Jonatan – hy het gebreklike voete.” Die koning vra toe vir hom, “Waar is hy?” waarop Siba toe vir die koning sê: “Hy is daar in die huis van Magir, seun van Ammiël, in Lo-Dabar.” Koning Dawid het hom toe laat haal uit Lo-Dabar, uit die huis van Magir, seun van Ammiël. Toe Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, by Dawid aankom, het hy neergeval met sy gesig teen die grond en diep neergebuig. Dawid sê toe: “Mefiboset?” Waarop hy antwoord: “Hier is ek, u dienaar!” Dawid het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want ek sal beslis aan jou guns bewys ter wille van Jonatan, jou vader. Ek sal aan jou al die grond van Saul, jou voorvader, teruggee. Jy self sal gereeld aan my tafel brood eet.” Hy het diep gebuig en gesê: “Wat is u dienaar, dat u aan die dooie hond wat ek is, aandag gee?” Die koning het Siba, die dienaar van Saul, ontbied en vir hom gesê: “Alles wat aan Saul en sy hele familie behoort het, gee ek aan die seun van jou heer. Jy moet vir hom die grond bewerk, jy en jou seuns en jou slawe. Jy moet die opbrengs inbring, sodat die seun van jou heer brood kan hê en hy dit kan eet. En die seun van jou heer, Mefiboset, sal gereeld brood eet aan my tafel. ” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. Siba het die koning geantwoord: “Ooreenkomstig alles wat my heer die koning sy dienaar beveel, presies so sal u dienaar optree.” Mefiboset het toe aan sy tafel geëet, soos een van die koning se seuns. Mefiboset het 'n jong seun gehad met die naam Miga. Al die bewoners van Siba se huis was Mefiboset se dienaars. Mefiboset het in Jerusalem bly woon, want hy was 'n gereelde gas aan die koning se tafel. Hy was kreupel; albei sy voete was misvormd. 'n Tyd daarna het die koning van die Ammoniete gesterf, en Ganun, sy seun, het in sy plek koning geword. Dawid sê toe: “Ek wil welwillendheid betoon teenoor Ganun, seun van Nagas, soos sy vader teenoor my welwillendheid betoon het.” Dawid stuur toe sy amptenare om met hom meegevoel te betuig oor sy vader. Toe die amptenare van Dawid in die gebied van die Ammoniete aankom, sê die •hoë amptenare van die Ammoniete vir Ganun, hulle heer: “Eer Dawid, volgens u mening, u vader omdat hy mense na u stuur wat meegevoel betuig? Is dit nie met die doel om inligting oor die stad in te win en dit te verken, net om dit dan te verwoes, dat Dawid sy amptenare na u gestuur het nie?” Ganun het toe Dawid se amptenare gevat, die helfte van hulle baarde afgeskeer, die helfte van hulle klere tot op hulle sitvlakke afgesny, en hulle toe weggestuur. Toe Dawid daaroor ingelig is, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was verskriklik verneder. Die koning het gesê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het, en kom dan terug.” Toe die Ammoniete besef dat hulle hulleself veragtelik gemaak het by Dawid, het hulle 'n afvaardiging gestuur en Arameërs van Bet-Regob en Soba gehuur – twintigduisend voetsoldate – en ook die koning van Maäga met 'n duisend man en manne van Tob, twaalfduisend van hulle. Dawid het daarvan te hore gekom en vir Joab met die hele leër, die helde, gestuur. Die Ammoniete het uitgetrek en gevegslinies opgestel by die ingang van die stadspoort. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Tob en Maäga was op hulle eie in die veld. Toe Joab sien dat daar gevegslinies voor en agter hom is, het hy uit al die keurtroepe in Israel 'n keuse gemaak en hulle teenoor die Arameërs opgestel. Die res van die manskappe het hy geplaas onder bevel van Abisai, sy broer, en hulle teenoor die Ammoniete opgestel. Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek gaan om jou te help. Wees dapper en laat ons ons inspan ter wille van ons mense en die dorpe van ons God. Die Here sal doen wat goed is in sy oë.” Toe het Joab en die manskappe by hom nader gegaan vir die geveg teen die Arameërs, maar hulle het voor hom uit gevlug. Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, het ook hulle voor Abisai uit gevlug en die stad binnegegaan. Joab het toe teruggedraai van die Ammoniete af en in Jerusalem aangekom. Toe die Arameërs sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle hergroepeer. Hadad-Eser het boodskappers gestuur en die Arameërs wat anderkant die Rivier, was, laat optrek. Hulle het by Gelam aangekom met Sobag, die bevelvoerder van die leër van Hadad-Eser, op die voorpunt. Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel byeengebring, die Jordaan oorgesteek en in Gelam aangekom. Die Arameërs het gevegslinies opgestel teenoor Dawid en teen hom geveg. Maar die Arameërs het voor Israel op die vlug geslaan. Dawid het van die Arameërs sewehonderd trekperde en veertig afdelings van die strydwabemanning doodgemaak. Sobag, die bevelvoerder van sy leër, het hy neergevel, en hy het daar gesterf. Toe al die konings wat aan Hadad-Eser onderdanig was, sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle met die Israeliete vrede gesluit en was aan hulle onderdanig. Die Arameërs was toe bang om die Ammoniete weer te help. Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Dawid vir Joab uitgestuur, en saam met hom sy amptenare en die hele Israel. Hulle het die Ammoniete vernietigend verslaan en Rabba beleër. Maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Op 'n keer het Dawid teen laatmiddag van sy bed af opgestaan en op die dak van die koninklike paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af 'n vrou wat besig is om haar te was; die vrou was besonder mooi. Dawid stuur toe iemand om navraag te doen oor die vrou. Die man het gesê: “Is dit nie Batseba, die dogter van Eliam, die vrou van Urija, die Hetiet nie?” Dawid het boodskappers gestuur en haar laat haal. Sy het na hom gekom en hy het met haar gemeenskap gehad. Sy was juis besig om haar te reinig van haar onreinheid. Sy het toe teruggegaan na haar huis. Die vrou het swanger geword en iemand gestuur om Dawid daaroor in te lig. Sy het gesê: “Ek is swanger.” Daarop stuur Dawid 'n boodskap na Joab: “Stuur Urija, die Hetiet, na my.” Joab het Urija na Dawid gestuur. Toe Urija by hom kom, vra Dawid hoe dit gaan met Joab en met die manskappe en met die oorlog. Dawid sê toe vir Urija: “Gaan af na jou huis en was jou voete.” Toe Urija uit die paleis van die koning gaan, het 'n geskenk van die koning hom gevolg, maar Urija het by die ingang na die koninklike paleis, by al die dienaars van sy heer, gaan slaap. Hy het nie na sy huis afgegaan nie. Toe Dawid ingelig is, “Urija het nie na sy huis afgegaan nie”, het hy vir Urija gevra: “Het jy nie pas van 'n reis af hier aangekom nie? Waarom het jy nie na jou huis afgegaan nie?” Urija het Dawid geantwoord: “Die ark en Israel en Juda bly in tydelike skuilings, en my heer Joab en die dienaars van my heer kamp in die oop veld; kan ek dan na my huis gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? By u lewe, ja, so seker as wat u leef, sweer ek: So iets sal ek nie doen nie.” Daarop sê Dawid vir Urija: “Bly ook vandag nog hier, dan sal ek jou môre laat gaan.” Urija het toe daardie dag en ook die volgende dag in Jerusalem gebly. Dawid het hom uitgenooi, en hy het by hom geëet en gedrink. Dawid het hom dronk gemaak, maar teen die aand het hy uitgegaan om op sy lêplek by die dienaars van sy heer te gaan slaap. Na sy huis het hy nie afgegaan nie. In die oggend het Dawid vir Joab 'n brief geskryf en dit met Urija saamgestuur. Hy het in die brief geskryf: “Sit Urija in die voorste linie van die hewigste geveg. Val dan terug agter hom, sodat hy neergevel word en sterf.” Joab het, nadat hy die stad dopgehou het, Urija geplaas op die plek waar hy besef het daar bekwame verdedigers was. Toe die manne van die stad uittrek en teen Joab veg, het van die manskappe, van Dawid se dienaars, geval. Ook Urija, die Hetiet, het gesterf. Joab het iemand gestuur wat Dawid moes inlig oor die hele verloop van die oorlog. Hy het die boodskapper opdrag gegee: “Wanneer jy klaar die hele verloop van die oorlog aan die koning oorgedra het, en die woede van die koning dalk opvlam en hy vir jou sê, ‘Waarom het julle so na aan die stad gegaan om te veg? Het julle nie geweet dat hulle van die muur af sou skiet nie? Wie het Abimeleg, seun van Jerubbeset, neergevel? Was dit nie 'n vrou wat 'n boonste maalklip van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so na aan die muur gekom?’ dan moet jy net sê, ‘U dienaar, Urija, die Hetiet, is ook dood.’ ” Die boodskapper het gegaan, en toe hy daar aankom, het hy vir Dawid alles vertel waarvoor Joab hom gestuur het. Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Omdat die manne die oorhand oor ons gekry het, het hulle na ons uitgekom in die veld. Ons het hulle egter teruggedryf tot by die ingang na die stadspoort. Toe het die boogskutters bo van die muur af op u dienaars geskiet, en van die koning se dienaars is dood. Ook u dienaar, Urija, die Hetiet, is dood.” Dawid het vir die boodskapper gesê: “Jy moet vir Joab so sê, ‘Hierdie voorval moet jy nie as iets verkeerds beskou nie. Die swaard verteer immers nou so, en dan weer so. Verskerp jou stryd teen die stad en breek dit af.’ Praat hom so moed in.” Toe die vrou van Urija hoor dat Urija, haar man, dood is, het sy oor haar eggenoot gerou. Nadat die routyd verby was, het Dawid haar laat haal en in sy paleis ontvang. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar dit wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here. Die Here het Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom kom, het hy vir hom gesê: “Daar was twee mans in 'n sekere dorp. Die een was ryk en die ander was arm. Die ryk man het besonder baie kleinvee en beeste gehad, en die arm man het niks behalwe een klein ooilam gehad nie, wat hy gekoop het. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Sy het selfs van sy stukkie brood geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Sy was vir hom soos 'n dogter. Toe daar 'n besoeker by die ryk man opdaag, was hy te jammer om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom opgedaag het, iets voor te berei. Hy neem toe die ooilam van die arm man, en berei 'n ete voor vir die man wat by hom aangekom het.” Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: “So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man jammer gekry het nie.” Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. Waarom het jy die woord van die Here geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’ “So sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan onheil teen jou verwek uit jou eie huis. Ek sal jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee. Hy sal openlik by jou vroue slaap. Omdat jy dit in die geheim gedoen het, sal Ek hierdie gebeure voor die hele Israel laat plaasvind en voor die volle son.’ ” “Ek het gesondig teen die Here, ” het Dawid vir Natan gesê, waarop Natan toe vir Dawid sê: “Die Here self het jou sonde opsy geskuif. Jy sal nie sterf nie; maar omdat jy deur hierdie gebeure heeltemal oneerbiedig opgetree het teenoor die Here, sal die kind wat vir jou gebore is, sonder twyfel sterf.” Toe het Natan huis toe gegaan. Die Here het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.” Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir hom en het deur Natan, die profeet, 'n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die Here. Intussen het Joab teen Rabba van die Ammoniete geveg en die koninklike stad omsingel. Joab stuur toe boodskappers na Dawid en laat hom weet: “Ek het teen Rabba geveg en ook beheer geneem oor die watervoorsiening. Bring nou die res van die manskappe byeen, plaas die stad onder beleg en neem dit in; anders neem ek self die stad in, en dan word my naam daaroor uitgeroep.” Dawid het toe al die manskappe byeengebring, na Rabba gegaan, teen die stad geveg en dit ingeneem. Hy het hulle koning se kroon van sy kop afgehaal. Die gewig daarvan was 'n kikkar goud, en daar was edelstene in. Dit is op Dawid se kop geplaas. Die buit van die stad wat hy weggevoer het, was besonder groot. Die mense wat daarin was, het hy uitgebring. Hy het hulle geplaas by klipsae, ysterpikke en ysterbyle. Daarna het hy hulle oorgeplaas na die steenvorms. So het hy met al die dorpe van die Ammoniete gemaak. Toe het Dawid en al die manskappe teruggekeer na Jerusalem. Daarna het die volgende gebeur: Absalom, seun van Dawid, het 'n mooi suster gehad. Haar naam was Tamar, en Amnon, seun van Dawid, het op haar verlief geraak. Amnon was so terneergedruk, hy was skoon siek oor Tamar, sy suster. Sy was immers 'n maagd, en dit het vir hom onmoontlik gelyk om enigiets aan haar te doen. Maar Amnon het 'n vriend gehad met die naam Jonadab, 'n seun van Samma, die broer van Dawid. Dié Jonadab was 'n baie uitgeslape man. Hy het vir Amnon gevra: “Waarom lyk jy, seun van die koning, oggend ná oggend so ellendig? Wil jy my nie maar vertel nie?” Amnon sê toe vir hom: “Ag, dit is Tamar, die suster van my broer Absalom – ek is verlief!” “Gaan lê op jou bed, en maak of jy siek is,” het Jonadab vir hom gesê. “Wanneer jou pa dan inkom om jou te sien, moet jy vir hom sê, ‘Laat Tamar, my suster, asseblief kom en my met kos versorg. Sy moet die voedsel voor my voorberei, sodat ek dit kan sien en uit haar hand kan eet.’ ” Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon vir die koning: “Laat Tamar, my suster, asseblief kom en twee hartvormige koekies voor my voorberei, sodat ek dit uit haar hand kan eet.” Dawid stuur toe 'n boodskap vir Tamar in die paleis: “Gaan asseblief na die huis van Amnon, jou broer, en berei vir hom voedsel voor.” Tamar het toe na die huis van haar broer gegaan terwyl hy in die bed lê. Sy het die deeg geneem, dit geknie en hartvormige koekies voor hom voorberei, en die koekies gaargemaak. Sy het die bakpan geneem en dit voor hom leeggemaak, maar hy het geweier om te eet. Amnon sê toe: “Kry almal uit hier by my!” Almal by hom het toe uitgegaan. Toe sê Amnon vir Tamar: “Bring die voedsel na die slaapkamer, sodat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar het die hartvormige koekies wat sy voorberei het, geneem en dit vir Amnon, haar broer, in die slaapkamer gebring. Maar toe sy dit vir hom naderbring om te eet, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my, my suster!” Maar sy het vir hom gesê: “Asseblief nie, my broer! Moet my nie verkrag nie, want so iets mag nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie gruweldaad pleeg nie! En ek, waarheen sal ek gaan met die bespotting wat ek dra? En jy, jy sal soos een van die dwase in Israel wees. Daarom, praat liewer met die koning, want hy sal my nie van jou weerhou nie. ” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy, en het haar verkrag en met haar gemeenskap gehad. Maar toe kry hy 'n baie groot weersin in haar; ja, die weersin wat hy in haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het. Amnon sê toe vir haar: “Staan op! Gaan weg!” Sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, want hierdie groot onreg om my weg te stuur, is erger as dit wat jy my reeds aangedoen het.” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy roep toe sy lyfbediende en sê: “Vat tog net hierdie vrou van my af weg buitentoe en sluit die deur agter haar.” Sy het 'n lang rok met moue aangehad, want die dogters van die koning wat nog maagde was, het sulke mantels gedra. Nadat sy bediende haar buitentoe geneem en die deur agter haar gesluit het, het Tamar as geneem en op haar kop gesit, en die lang rok met moue wat sy aangehad het, geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en aangestap terwyl sy aanhou skreeu. Haar broer Absalom vra toe vir haar: “Was jou broer Amnon by jou? Bly nou maar stil, my suster; hy is jou broer. Moet jou nie oor hierdie gebeure kwel nie. ” Tamar het in haar broer Absalom se huis gaan woon, 'n eensame vrou. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, het hy briesend kwaad geword. Absalom het met Amnon nie weer 'n woord, goed of sleg, gepraat nie. Maar Absalom het Amnon gehaat omdat hy Tamar, sy suster, verkrag het. Twee jaar later was daar skeerders by Absalom in Baäl-Gasor, by Efraim. Absalom het al die koning se seuns genooi. Absalom het by die koning aangekom en gesê: “Kyk, daar is skeerders by u dienaar. Die koning en sy amptenare moet asseblief saam met u dienaar gaan.” Maar die koning het Absalom geantwoord: “Nee my seun; ons kan nie almal gaan nie, sodat ons nie 'n las op jou is nie.” Alhoewel Absalom by hom aangedring het, wou hy nie gaan nie en het hom seën toegewens. Absalom sê toe: “As u nie kan nie, laat my broer Amnon asseblief saam met ons gaan.” “Waarom moet hy dan saam met jou gaan?” het die koning gevra. Absalom het egter so by hom aangedring dat hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom gestuur het. Absalom het vir sy jong manne opdrag gegee: “Let goed op; sodra Amnon se hart vrolik raak van die wyn, sal ek vir julle sê, ‘Val Amnon aan!’ Dan moet julle hom doodmaak; moenie bang wees nie. Dit is immers ek wat julle die opdrag gee. Wees dapper en wys dat julle onverskrokke manne is!” Die jong manne van Absalom het toe met Amnon gemaak soos Absalom beveel het. Toe spring al die seuns van die koning op, klim elkeen op sy muil en vlug weg. Hulle was nog op pad, toe kom die berig by Dawid uit: “Absalom het al die koning se seuns neergevel! Daar het nie een van hulle oorgebly nie.” Die koning het opgestaan, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy dienaars het ook met geskeurde klere daar gestaan. Maar Jonadab, die seun van Dawid se broer Samma, het gesê: “My heer moet nie dink dat hulle al die jong manne, die seuns van die koning, doodgemaak het nie; slegs Amnon is dood; want van die dag af dat hy Tamar, sy suster, verkrag het, is dit al waaroor Absalom gepraat het. Daarom moet my heer die koning die saak nie ter harte neem en dink dat al die koning se seuns dood is nie. Net Amnon alleen is dood.” Absalom het intussen gevlug. Toe die jong man wat moes waghou, opkyk, sien hy meteens 'n groot groep wat vanaf die pad agter hom, al langs die berg, aankom. Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die koning se seuns – dit gebeur net soos u dienaar gesê het.” Net toe hy dit gesê het, kom die koning se seuns toe werklik daar aan! Hulle het hardop begin huil, en ook die koning en al sy amptenare het bitterlik gehuil. Absalom het gevlug en na Talmai, seun van Ammigur, die koning van Gesur, gegaan. Dawid het die hele tyd oor sy seun gerou. Toe Absalom gevlug en na Gesur gegaan het, het hy drie jaar daar gebly. Koning Dawid het daarvan afgesien om teen Absalom uit te trek, want hy het berusting gevind oor Amnon – dat hy dood was. Joab, seun van Seruja, het besef dat die koning se gedagtes by Absalom was. Joab stuur toe iemand na Tekoa en laat kom daarvandaan 'n slim vrou. Hy het vir haar gesê: “Maak tog asof jy rou; trek rouklere aan en moet jou nie met olie invryf nie. Gedra jou soos 'n vrou wat nou al baie lank treur oor 'n dooie. Gaan dan na die koning en stel hierdie saak aan hom.” Joab het haar toe voorgesê wat om te sê. Die vrou uit Tekoa het dit toe vir die koning gaan sê. Sy het neergeval met haar gesig teen die grond, en toe diep neergebuig. Sy het gesê: “Help tog, o koning!” Toe die koning vir haar vra “Wat wil jy hê?” het sy geantwoord: “Ag, ek is 'n weduwee. My man is dood. U slavin het twee seuns gehad. Hulle het in die veld aan die baklei geraak, en daar was niemand wat tussenbeide kon tree nie. Die een het die ander platgeslaan en hom doodgemaak. En sowaar, nou het die hele familiegroep teen u slavin opgestaan en sê, ‘Lewer die een uit wat sy broer doodgeslaan het, sodat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het. Ons wil hom uitwis, ook al is dit die erfgenaam.’ Hulle gaan my enigste kooltjie vuur wat oorgebly het, uitdoof, en so vir my man geen naam of nakomeling laat oorbly op die aardbodem nie.” Die koning sê toe vir die vrou: “Gaan maar huis toe; ek sal opdragte gee oor jou.” Maar die vrou uit Tekoa sê vir die koning: “Op my, my heer die koning, en op my naaste familie, gaan die skuld rus; maar u en u troon gaan onskuldig wees.” Toe sê die koning: “Die man wat jou hieroor aanspreek, moet jy na my toe bring. Hy sal nie weer aan jou raak nie.” Daarop sê sy: “Die koning moet asseblief, met die aanroep van die Naam van die Here u God die bloedwreker daarvan weerhou om nog meer vernietiging aan te rig, dat hulle nie my seun uitwis nie.” Toe sê hy: “So waar as die Here leef, geen haar van jou seun sal op die grond val nie. ” “Mag u slavin asseblief 'n woord met my heer die koning praat?” het die vrou gevra, waarop hy toe antwoord: “Praat!” Toe sê die vrou: “Waarom het u dan so iets teen die volk van God beplan? Met hierdie uitspraak van die koning is hy aan 'n skuldige gelyk, aangesien die koning nie die een wat hy weggejaag het, laat terugkeer nie. Ja, ons moet beslis sterf, soos water wat uitgestort is op die grond en nie weer herwin kan word nie. God neem nie 'n lewe weg nie, maar Hy beraam planne, sodat die een wat weggejaag is nie van Hom moet wegdryf nie. En nou, die rede waarom ek gekom het om hierdie saak aan my heer die koning voor te lê, is omdat die mense my bang gemaak het. U slavin het toe gedink, ek moet tog met die koning praat. Miskien voldoen die koning aan die versoek van sy dienares; ja, die koning sal gehoor gee om sy dienares te red uit die greep van die man wat daarop uit is om my en my seun saam uit te wis, weg van die eiendom van God. U slavin het ook gedink, die woord van my heer die koning sal tog vir my rus bring; want soos 'n engel van God, so is my heer die koning, deurdat hy die goeie en die slegte aanhoor. Die Here u God, mag Hy met u wees.” Die koning reageer toe daarop en sê vir die vrou: “Moenie vir my enigiets wegsteek van wat ek vir jou gaan vra nie.” Die vrou het geantwoord: “My heer die koning moet asseblief praat.” Toe vra die koning: “Is die hand van Joab saam met jou in hierdie hele saak?” Die vrou het geantwoord en gesê: “So waar as wat u leef, my heer die koning, niemand kan verskil van enigiets wat my heer die koning sê nie. Ja, u dienaar Joab, dit is hy wat my opdrag gegee het, en dit is hy wat al hierdie woorde aan u slavin voorgesê het. Om die saak te versluier, het u dienaar, Joab, hierdie ding gedoen. Maar my heer is so wys soos 'n engel van God om alles te weet wat in die land gebeur.” Die koning sê toe vir Joab: “Nou maar goed, ek voldoen aan hierdie versoek. Gaan dan, bring die jong man Absalom terug.” Joab het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig en die koning geprys. Hy het gesê: “Vandag weet ek, u dienaar, dat ek guns gevind het in u oë, my heer die koning, omdat die koning aan die versoek van u dienaar voldoen.” Joab het gereedgemaak en na Gesur vertrek. Hy het Absalom na Jerusalem gebring. Die koning het egter gesê: “Hy moet na sy huis afdraai. My gesig mag hy nie sien nie.” Absalom het toe na sy huis afgedraai, maar die gesig van die koning het hy nie gesien nie. In die hele Israel was daar nie 'n man so mooi soos Absalom wie se lof mense so baie besing het nie. Van kop tot tone was daar geen gebrek aan hom nie. Wanneer hy sy hare geskeer het – aan die einde van elke jaar het hy dit geskeer; ja, wanneer dit te swaar geword het, moes hy dit skeer – dan het die hare van sy kop tweehonderd sikkel geweeg, volgens die koninklike gewigsmaat. Vir Absalom is daar drie seuns en 'n dogter gebore. Haar naam was Tamar. Sy was 'n besonder mooi vrou. Absalom het twee jaar in Jerusalem gewoon, maar die gesig van die koning het hy nie gesien nie. Absalom ontbied toe vir Joab om hom na die koning te stuur, maar hy het geweier om na hom te gaan. Hy het hom 'n tweede keer ontbied, maar Joab het steeds geweier om te gaan. Hy sê toe vir sy werkers: “Kyk, Joab se stuk land is langs myne. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.” Absalom se werkers het toe die stuk land aan die brand gesteek. Joab het opgestaan en toe hy by Absalom, by sy huis aankom, vra hy vir hom: “Waarom het jou werkers die stuk land wat aan my behoort, aan die brand gesteek?” Waarop Absalom vir Joab sê: “Kyk, ek het jou ontbied om vir jou te sê, ‘Kom hierheen, sodat ek jou na die koning kan stuur om te vra: “Waarom het ek van Gesur af gekom? Dit sou vir my beter gewees het as ek steeds daar was.” ’ Ek wil nou voor die koning verskyn. As ek aan iets skuldig is, moet hy my maar doodmaak.” Joab het na die koning gegaan en dit aan hom oorgedra. Hy het Absalom toe ontbied. Toe hy by die koning kom, het hy diep voor hom gebuig, met sy gesig teen die grond, voor die koning. Die koning het Absalom toe gesoen. 'n Ruk later het Absalom vir hom 'n strydwa en perde aangeskaf, en ook vyftig man wat voor hom uit hardloop. Absalom het altyd vroeg opgestaan, en dan het hy langs die pad by die stadspoort gaan staan. As daar enigiemand was wat 'n geskil gehad het waarmee hy na die koning gekom het vir 'n beslissing, het Absalom na hom geroep en vir hom gevra: “Van watter dorp af kom jy?” Wanneer hy dan antwoord: “U dienaar kom uit een van die stamme van Israel,” sê Absalom vir hom: “Kyk, jou eise is goed en eenvoudig, maar iemand wat nie na jou luister nie, dit is wat jy by die koning gaan vind.” Absalom het ook gesê: “Was ek maar aangestel as regter in die land! Dan kon elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na mý toe kom, en ek sou aan hom reg verskaf.” Wanneer iemand dan nader kom om diep voor hom te buig, steek hy sy hand uit, gryp hom vas en soen hom. Absalom het so opgetree teenoor al die Israeliete wat na die koning gekom het vir regspraak. Absalom het sodoende die harte van die manne van Israel gesteel. Ná verloop van vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag gaan en my gelofte wat ek vir die Here afgelê het, in Hebron nakom, want terwyl ek in Gesur in Aram gewoon het, het u dienaar 'n gelofte afgelê, met dié woorde, ‘As die Here my inderdaad na Jerusalem laat terugkeer, sal ek die Here gaan dien.’ ” Die koning het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Hy het toe gereedgemaak en na Hebron gegaan. Maar Absalom het geheime boodskappers in al die stamme van Israel rondgestuur met die opdrag: “Sodra julle die geluid van die •ramshoring hoor, moet julle sê, ‘Absalom het koning geword in Hebron!’ ” Saam met Absalom het tweehonderd man uit Jerusalem vertrek, genooides wat in onskuld saamgegaan en van die hele saak niks geweet het nie. Verder het Absalom, terwyl hy die offers bring, vir Agitofel, die man uit Gilo, 'n raadgewer van Dawid, uit sy tuisdorp Gilo ontbied. Die sameswering het sterk geword, en die mense by Absalom het al hoe meer geword. Daar het 'n nuusdraer by Dawid aangekom en gesê: “Die harte van die manne van Israel is by Absalom.” Dawid sê toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Maak gereed en laat ons vlug, want 'n kans om voor Absalom weg te kom, sal daar nie vir ons wees nie. Haas julle om te vertrek, anders kom hy skielik op ons af, bring onheil oor ons en verslaan die stad met die skerpte van die swaard.” Die koning se amptenare het vir die koning gesê: “Hier is ons, u dienaars, om te voldoen aan alles wat my heer die koning begeer.” Die koning het uit die stad getrek, en sy hele huishouding het in sy spore gevolg; maar die koning het tien byvroue agtergelaat om die paleis op te pas. Toe die koning en al die mense wat in sy spore volg, daar uittrek, het hulle by die laaste huis gaan staan, terwyl al sy onderdane by hom verbygaan, al die Kreti en Pleti. Ook al die manne van Gat, die seshonderd man wat hom uit Gat gevolg het, het voor die koning verbygaan. Die koning sê toe vir Ittai, die man uit Gat: “Waarom gaan jy ook saam met my? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy is 'n buitelander, en boonop 'n balling uit jou woonplek. Jy het maar pas hier aangekom; en sou ek jou vandag laat rondswerf omdat jy saam met ons gaan? Ek moet gaan waar ek kan. Draai om, en laat jou mense omdraai. Mag guns en trou met jou wees.” Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: “So waar as die Here leef en my heer die koning leef, op die plek waar my heer die koning is, of dit nou vir dood of vir lewe is, daar sal u dienaar beslis ook wees.” Toe sê Dawid vir Ittai: “Gaan voort, trek verby!” Ittai, die man uit Gat, het toe verbygetrek, asook al sy manne en al die afhanklikes wat by hom was. Die hele landstreek het heeltyd hardop gehuil terwyl al die mense verbygaan. Toe die koning deur die Kidrondal gaan, was al die mense ook besig om daar deur te trek op pad na die woestyn. Kyk, ook Sadok was daar, en al die Leviete saam met hom wat die verbondsark van God dra. Hulle het die ark van God neergesit, en Abjatar het offers gebring totdat al die mense die trek uit die stad voltooi het. Die koning sê toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad. As ek guns vind in die oë van die Here, sal Hy my laat terugkeer en my weer die ark en sy staanplek laat sien. Maar as Hy sou sê, ‘Ek is nie tevrede met jou nie,’ wel, ek is gereed; Hy kan met my doen wat goed is in sy oë.” Die koning het verder vir Sadok, die priester, gesê: “Sal jy op die uitkyk bly? Gaan in vrede terug na die stad, jy en jou seun Agimaäs, en Jonatan, seun van Abjatar – julle twee se seuns moet by julle wees. Wees op die uitkyk. Ek sal by die deurgaanplekke na die woestyn vertoef totdat daar van julle af berig kom om my op hoogte te bring.” Sadok en Abjatar het toe die ark van God teruggeneem na Jerusalem, en hulle het daar gebly. Terwyl Dawid teen die hang van die Olyfberg opgaan, het hy gehuil en sy kop bedek. Hy het kaalvoet geloop. Al die mense wat by hom was, elkeen van hulle, het ook hulle koppe bedek en het gehuil terwyl hulle teen die berg opgaan. Dawid is meegedeel: “Agitofel is onder die samesweerders by Absalom.” Daarop sê Dawid: “Laat Agitofel se raad tog dwaasheid wees, Here. ” Toe Dawid by die kruin kom, waar mens voor God in aanbidding buig, kyk, daar kom Gusai, 'n man uit Ereg, hom tegemoet met sy kleed geskeur en grond op sy kop. Dawid sê toe vir hom: “As jy saam met my oorgaan, sal jy vir my 'n las wees; maar as jy na die stad terugkeer en vir Absalom sê, ‘Ek is u dienaar, o koning; ek was voorheen die dienaar van u vader, maar nou is ek u dienaar,’ kan jy vir my die raad van Agitofel ondergrawe. Is die priesters Sadok en Abjatar nie saam met jou daar nie? Elke berig wat jy kry uit die koninklike paleis, kan jy aan die priesters Sadok en Abjatar oordra. Kyk, daar by hulle is hulle twee seuns, Agimaäs van Sadok en Jonatan van Abjatar. Julle moet elke berig wat julle deur hulle kry, na my stuur.” Gusai, die vriend van Dawid, het toe by die stad aangekom, terwyl Absalom Jerusalem binnegaan. Dawid het nog net 'n entjie van die kruin van die berg af weggetrek, toe kom Siba, die dienaar van Mefiboset, hom skielik tegemoet met 'n paar opgesaalde donkies, gelaai met tweehonderd brode, 'n honderd blokke saamgeperste rosyne, honderd somervrugte en 'n kruik wyn. Die koning vra toe vir Siba: “Wat wil jy hiermee doen?” Siba het geantwoord: “Die donkies is vir die koning se huisgesin om op te ry, die brood en die somervrugte is vir die dienaars om te eet, en die wyn is vir hulle wat in die woestyn uitgeput raak, om te drink.” “En waar is die seun van jou heer?” vra die koning toe, waarop Siba die koning antwoord: “Kyk, hy het in Jerusalem gebly, want hy het gesê, ‘Vandag gee die huis van Israel die koningskap van my vader aan my terug.’ ” Toe sê die koning vir Siba: “Kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.” Siba het gesê: “Ek buig in eerbied. Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning.” Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom daar skielik 'n man uit die dorp, 'n verlangse familielid van Saul; sy naam was Simeï, seun van Gera. Terwyl hy uitkom, skel hy en gooi klippe na Dawid en al die amptenare van koning Dawid, al was die mense en al die krygsmanne aan sy regter- en aan sy linkerkant. Dit is wat Simeï al skellend gesê het: “Uit hier! Uit hier, jou moordenaar, jou skobbejak! Die Here het al die bloedvergieting in die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom. Die Here het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee. En hier sit jy nou met jou eie teenspoed, omdat jy 'n moordenaar is.” Abisai, seun van Seruja, sê toe vir die koning: “Waarom skel hierdie dooie hond my heer die koning uit? Laat ek tog daarheen gaan en sy kop afkap.” Maar die koning het geantwoord: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Hy skel so omdat die Here vir hom gesê het, ‘Skel Dawid uit!’ Wie kan dan sê, ‘Waarom maak jy so?’ ” Dawid het vir Abisai en al sy dienaars gesê: “Kyk, my seun wat ek self verwek het, soek my lewe – hoeveel te meer dan nou hierdie Benjaminiet? Laat hom met rus; laat hom skel as die Here dit vir hom gesê het. Miskien sien die Here my trane raak en laat die Here weer vir my die goeie terugkeer in die plek van Simeï se geskel op hierdie dag.” Dawid en sy manne het padlangs gehou, en Simeï het naby hom al langs die rant gestap, terwyl hy loop en skel en klippe en los grond in sy rigting gooi. Die koning en al die mense by hom het uitgeput by die Jordaan aangekom en daar asem geskep. Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, het intussen in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by hom. Toe Gusai, die man uit Ereg, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê hy dadelik vir Absalom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!” Maar Absalom het vir Gusai gevra: “Is dit nou jou trou teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?” Gusai het Absalom geantwoord: “Nee, want die een wat deur die Here, en hierdie manskappe en al die manne van Israel gekies is, aan hom behoort ek en by hom sal ek bly. Boonop: Wie moet ek dan dien? Is dit nie sy seun nie? Soos ek in die teenwoordigheid van u vader gedien het, so sal ek voor u dien. ” Toe sê Absalom vir Agitofel: “Gee julle nou raad. Wat moet ons doen?” Agitofel het Absalom geantwoord: “Gaan in by die byvroue van jou pa wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas. Die hele Israel sal hoor dat jy jou veragtelik gemaak het by jou pa. Dit sal die hande sterk van almal wat by jou is.” Daar is toe vir Absalom 'n tent oopgespan op die dak van die paleis, en Absalom het ten aanskoue van die hele Israel by sy vader se byvroue ingegaan. Die raad van Agitofel wat hy in dié tyd gegee het, was so goed asof iemand 'n woord van God gevra het. Dit is hoe al die raad van Agitofel aan Dawid sowel as aan Absalom beskou is. Agitofel het ook vir Absalom gesê: “Laat ek twaalfduisend man uitsoek en gereedmaak, en Dawid vannag agternasit. Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal hom die skrik op die lyf jaag, en dan sal al die mense by hom vlug. Ek sal die koning alleen neervel en al die mense na jou terugbring. Met dié dat almal terugkeer, behalwe die man wat jy soek, sal al die mense ongedeerd wees.” Die voorstel was reg in die oë van Absalom en al die oudstes van Israel. Absalom het egter gesê: “Ontbied ook vir Gusai, die man uit Ereg, sodat ons kan hoor wat ook hy te sê het.” Toe Gusai by Absalom kom, het Absalom vir hom gesê: “Dit is die voorstel wat Agitofel gemaak het. Moet ons sy voorstel volg? Indien nie, praat jy dan!” Gusai sê toe vir Absalom: “Die raad wat Agitofel gegee het, is hierdie keer nie goed nie.” Gusai sê toe daarby: “U ken self u vader en sy manne: Hulle is helde, en hulle is so omgekrap soos 'n beer in die veld wat van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n krygsman; hy sal nie by die mense slaap nie. Kyk, nou skuil hy in een van die klowe of in een van die ander plekke. As daar van u manne aan die begin val, sal dié wat dit hoor, sê, ‘Daar was 'n slagting onder die manskappe wat Absalom volg.’ Dan sal selfs die moed van 'n onverskrokke man, met die hart van 'n leeu, heeltemal wegsmelt, omdat die hele Israel weet dat u vader 'n held is en dat daar by hom onverskrokke manne is. Ja, my raad is: Laat die hele Israel, van Dan tot Berseba, so baie soos die sand wat langs die see is, onverwyld by u byeenkom, met u wat persoonlik aan die stryd deelneem. Ons sal op hom afkom in een van die plekke waar hy hom bevind, en dan sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Daar sal van hom niks oorbly nie, ook van die manne by hom sal selfs nie een oorbly nie. En as hy hom in 'n stad terugtrek, sal die hele Israel toue bring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep tot in die spruit, totdat daar nie meer 'n enkele klippie te vinde is nie.” Absalom en al die manne van Israel sê toe: “Die raad van Gusai, die man uit Ereg, is beter as die raad van Agitofel.” Die Here het besluit om Agitofel se goeie raad te dwarsboom, sodat die Here 'n ramp oor Absalom kon bring. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die priesters, gesê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die oudstes van Israel gegee het, en dit is die raad wat ek gegee het. Stuur dan nou gou iemand en laat weet vir Dawid, ‘Moenie die nag by die deurgaanplekke na die woestyn oorbly nie, maar trek beslis verder; anders word die koning en al die mense by hom verslind.’ ” Jonatan en Agimaäs het by En-Roghel gereed gestaan, en 'n slavin sou gaan en aan hulle die boodskap oordra. Hulle moes dan gaan en koning Dawid inlig. Hulle kon dit immers nie waag om die stad binne te gaan en sodoende gesien te word nie. Maar 'n jong man het hulle gesien en vir Absalom gaan vertel. Hulle twee het toe haastig padgegee en by die huis aangekom van 'n man in Bagurim wat 'n put in sy binnehof gehad het. Hulle het daarin afgeklim, en die vrou het 'n doek geneem, dit oor die opening van die put getrek en gort daarop uitgesprei, sodat niks opgemerk kon word nie. Toe Absalom se dienaars by die vrou in haar huis kom, vra hulle: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Maar die vrou het hulle geantwoord: “Hulle het deur die waterkuil gegaan.” Die dienaars het gesoek, maar niks gekry nie, en toe teruggegaan na Jerusalem. Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim, verder gegaan en aan koning Dawid berig gebring. Hulle het vir Dawid gesê: “Maak gereed en gaan gou deur die water, want dit is die raad wat Agitofel oor julle gegee het.” Dawid en al die mense by hom het toe gereedgemaak en die Jordaan oorgesteek. Teen ligdag die oggend was daar nie een oor wat nie die Jordaan oorgesteek het nie. En Agitofel, hy het intussen gesien dat sy raad nie gevolg word nie. Toe saal hy die donkie op, maak gereed en gaan na sy huis in sy tuisdorp. Hy het opdragte gegee oor sy huisgesin, en homself opgehang. Hy is dood en is in sy vader se graf neergelê. Dawid het in Maganajim aangekom. En Absalom het deur die Jordaan getrek, hy en al die manne van Israel saam met hom. Absalom het Amasa oor die leër aangestel in Joab se plek. Amasa was die seun van 'n man met die naam Jeter, 'n Ismaeliet wat by Abigal ingegaan het. Sy was 'n dogter van Nagas, die suster van Seruja, die moeder van Joab. Israel en Absalom het kamp opgeslaan in die gebied van Gilead. Toe Dawid in Maganajim aankom, was Sobi, seun van Nagas uit Rabba van die Ammoniete, en Magir, seun van Ammiël uit Lo-Dabar, en Barsillai, 'n man van Gilead wat uit Rogelim kom, daar gereed met 'n bed, met bakke, kleipotte, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies, lensies, gebraaide koring, heuning, dikmelk, kleinvee, en kaas gemaak van beesmelk. Hulle het dit alles vir Dawid en die mense by hom gebring om te eet, “want,” het hulle gesê, “die mense sal honger en moeg en dors wees in die woestyn”. Dawid het die manskappe by hom gemonster en •aanvoerders van duisend en aanvoerders van honderd aangestel. Toe het Dawid die manskappe uitgestuur, 'n derde onder bevel van Joab, 'n derde onder bevel van Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, en 'n derde onder bevel van Ittai, die man uit Gat. Die koning het vir die manskappe gesê: “Ek gaan beslis ook saam met julle uittrek.” Maar die manskappe het gesê: “U mag nie saam uittrek nie, want as ons wel moet vlug, sal hulle nie op ons ag slaan nie. En al sterf die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag slaan nie, want u is so goed soos tienduisend van ons. Daarom is dit beter as u vir ons uit die stad tot hulp sal wees.” Die koning het hulle geantwoord: “Wat vir julle die beste lyk, sal ek doen.” Die koning het toe langs die stadspoort gaan staan, en al die manskappe het in eenhede van honderd en duisend uitgetrek. Die koning het Joab, Abisai en Ittai opdrag gegee: “Werk, ter wille van my, saggies met die jong man, met Absalom. ” Al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die aanvoerders opdragte gee in verband met Absalom. Die manskappe het uitgetrek na die veld om teen Israel te staan te kom. Die geveg het plaasgevind in die beboste gebied van Efraim. Daar is die manskappe van Israel verslaan deur die dienaars van Dawid. Op daardie plek was daar dié dag 'n groot slagting – twintigduisend man. Van daar af het die geveg oor die hele gebied versprei. Die bosse het daardie dag meer lewens geëis as die swaard. Absalom het hom teen die dienaars van Dawid vasgeloop terwyl hy op 'n muil gery het, en toe die muil onder die takke van 'n groot terebintboom deurgaan, is sy hare vasgevang in die terebint. Hy het tussen hemel en aarde bly hang, terwyl die muil wat onder hom was, verder gaan. Een van die manne het dit gesien en vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Kyk, ek het Absalom sien hang aan 'n terebintboom!” Daarop sê Joab toe vir die man wat dit vir hom vertel: “Jy het hom sowaar gesien! Waarom het jy hom dan nie net daar teen die grond neergevel nie? Ek sou verplig wees om vir jou tien silwerstukke en 'n gordel te gee.” Maar die man sê vir Joab: “Selfs al kan ek duisend silwerstukke op my handpalms afweeg, sal ek nie my hand uitsteek na die seun van die koning nie, want voor ons ore het die koning u en Abisai en Ittai opdrag gegee, ‘Sien om my ontwil om na die jong man, na Absalom.’ As ek egter vals opgetree het teen sy lewe – en niks bly vir die koning verborge nie – sou u self maar net opsy gestaan het.” Toe sê Joab: “Ek gaan nie so hier voor jou staan en wag nie.” Hy neem toe drie stokke in sy hand en steek dit in die bors van Absalom terwyl hy nog lewend is in die terebintboom. Toe draai tien jong manne, wapendraers van Joab, af, slaan op Absalom toe en maak hom dood. Joab het op die •ramshoring geblaas. Die manskappe het die agtervolging van Israel gestaak, want Joab het die manskappe teruggehou. Hulle het Absalom geneem en hom in die beboste gebied in 'n groot gat gegooi. Hulle het 'n baie groot hoop klippe op hom gepak. Die hele Israel het intussen gevlug, elkeen na sy tente toe. Gedurende sy lewe het Absalom die gedenksteen wat daar in die vallei van die koning is, geneem en vir homself opgerig; want hy het gesê: “Ek het nie 'n seun om my naam in herinnering te hou nie.” Hy het toe die gedenksteen na homself vernoem, en dit word tot vandag toe die Gedenkteken van Absalom genoem. Agimaäs, seun van Sadok, het gesê: “Laat ek asseblief hardloop en die nuus aan die koning oordra dat die Here sy reg gehandhaaf het deur hom uit die hand van sy vyande te red.” Joab het egter vir hom gesê: “Vandag is jy nie die man vir die nuus nie. Jy kan op 'n ander dag die nuus oordra. Op hierdie dag mag jy nie die nuus oordra nie, omdat die koning se seun dood is.” Joab het toe vir 'n Kussiet gesê: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Die Kussiet het diep gebuig voor Joab en toe gehardloop. Maar Agimaäs, seun van Sadok, het weer 'n keer vir Joab gesê: “Wat ook al gebeur, ek wil asseblief ook hardloop – ná die Kussiet.” Waarop Joab vra: “Waarom wil jy dan nou hardloop, my seun? Vir jou sal daar nie 'n boodskappersloon wees nie.” “Wat ook al gebeur, ek wil hardloop,” het hy gesê. “Hardloop dan!” het Joab vir hom gesê. Agimaäs het toe met die pad deur die vallei gehardloop en die Kussiet verbygesteek. Terwyl Dawid tussen die twee poorte sit, gaan die wag op na die dak van die poort, na die stadsmuur. Toe hy opkyk, sien hy skielik iemand wat alleen aangehardloop kom. Die wag roep toe uit en lig die koning in, waarop die koning sê: “As hy alleen is, kom hy met nuus.” Terwyl hy al nader kom, sien die wag 'n ander man wat hardloop. Die wag roep toe na die poortwag en sê: “Daar is sowaar nog 'n man wat alleen hardloop!” Toe sê die koning: “Ook hy bring nuus.” Die wag sê toe: “Ek sien aan die hardloop van die eerste een dat dit Agimaäs, seun van Sadok, se manier van hardloop is.” Daarop sê die koning: “Dit is 'n goeie man, en dit moet goeie nuus wees waarmee hy kom.” Agimaäs het uitgeroep en vir die koning gesê: “Vrede!” Toe buig hy diep voor die koning met sy gesig teen die grond en sê: “Die Here u God moet geprys word; Hy wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning gelig het.” Toe vra die koning: “Hoe gaan dit met die jong man, met Absalom?” Agimaäs het geantwoord: “Ek het 'n groot samedromming gesien toe Joab, die koning se dienaar, op die punt was om my, u dienaar, te stuur; maar ek weet nie wat dit was nie.” Die koning sê toe: “Draai om en neem jou plek daar in.” Hy het omgedraai en gaan staan juis toe die Kussiet daar aankom. Die Kussiet sê toe: “My heer die koning kan die nuus ontvang dat die Here vandag u reg gehandhaaf het deur u te bevry van die hand van almal wat teen u in opstand is.” Daarop vra die koning vir die Kussiet: “Hoe gaan dit met die jong man, met Absalom?” Die Kussiet het gesê: “Mag dit met die vyande van my heer die koning en met almal wat ten kwade teen u in opstand is, gaan soos met die jong man.” Die koning het begin bewe, en opgegaan na 'n bovertrek in die poort en gehuil. Terwyl hy loop, het hy hierdie woorde gesê: “My seun Absalom; my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!” Aan Joab is berig gebring: “Kyk, die koning huil en rou oor Absalom. ” Die oorwinning het daardie dag vir al die manskappe 'n dag van rou geword, omdat die manskappe daardie dag gehoor het die koning is gebroke oor sy seun. Die manskappe het dié dag die stad binnegesluip soos manskappe binnesluip wat verneder is omdat hulle in die geveg moes vlug. Die koning het sy gesig toegedraai en met 'n harde stem uitgeroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!” Toe gaan Joab na binne, na die koning, en sê: “Jy het vandag al jou dienaars met rooi gesigte gelaat – hulle wat vandag jou lewe en die lewe van jou seuns en dogters, en die lewe van jou vroue en byvroue gered het – deur dié lief te hê wat jou haat, en dié te haat wat jou liefhet. Jy het immers vandag te kenne gegee dat •aanvoerders en onderdane vir jou niks beteken nie. Ja, ek besef vandag dat, as Absalom sou lewe en ons almal vandag dood sou wees, dit dan reg sou wees in jou oë. Staan dan nou op, gaan uit en praat mooi met jou dienaars, want ek sweer voor die Here dat as jy nie uitgaan nie, niemand vannag by jou sal bly nie; en dit sal vir jou 'n ramp wees, erger as enige ramp wat jou oorgekom het van jou jeug af tot nou toe.” Die koning het toe opgestaan en in die poort gaan sit, en toe al die manskappe die berig ontvang, “Kyk, die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning saamgekom. Israel het egter gevlug, elkeen na sy tente toe. Al die manskappe in al die stamme van Israel het aan die stry geraak en gesê: “Die koning het ons gered uit die greep van ons vyande; ja, hy is die een wat ons laat ontsnap het uit die greep van die Filistyne. Maar nou het hy oor Absalom landuit gevlug, en Absalom, vir wie ons as koning oor ons gesalf het, is dood in die oorlog. Waarom swyg julle dan nou oor die terugbring van die koning?” Koning Dawid stuur toe 'n boodskap na die priesters Sadok en Abjatar om te laat weet: “Spreek die oudstes van Juda aan en sê, ‘Waarom moet julle die laaste wees om die koning na sy paleis terug te bring?’ ” Die gesprek van die hele Israel het immers die koning in sy verblyfplek bereik. Hy het gesê: “ ‘Julle is my broers, my bloedfamilie. Waarom moet julle die laaste wees om die koning terug te bring?’ En vir Amasa moet julle sê, ‘Is jy nie my bloedfamilie nie? Mag God my swaar straf as jy nie vir goed in my diens die bevelvoerder van die leër word in die plek van Joab nie!’ ” So het hy sonder uitsondering die harte gewen van al die manne van Juda. Hulle het toe vir die koning 'n boodskap gestuur: “Kom terug, u en al u dienaars!” Die koning het toe teruggegaan en by die Jordaan aangekom. Juda het tot by Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te begelei. Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet wat uit Bagurim kom, het gou gemaak en saam met die manne van Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. 'n Duisend man uit Benjamin was saam met hom, asook Siba, 'n hofdienaar van Saul met sy vyftien seuns en twintig slawe by hom. Hulle het voor die koning op die Jordaan afgestorm en die drif deurgegaan om die koning se huisgesin deur te help en om te doen wat hy nodig ag. Simeï, seun van Gera, het, toe hy die Jordaan oorsteek, voor die koning neergeval. Hy het vir die koning gesê: “My heer moet my nie die skuld toereken nie. Moet tog nie daaraan bly dink dat u dienaar die spoor byster geraak het die dag toe my heer die koning uit Jerusalem vertrek het nie. Die koning moet dit nie ter harte neem nie, want ek, u dienaar, besef dat ek die een is wat gesondig het. Maar kyk, vandag het ek, van die hele huis van Josef, eerste afgekom om my heer die koning te ontmoet.” Abisai, seun van Seruja, het daarop gereageer en gesê: “Moet Simeï nie hiervoor doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die Here uitgeskel.” Dawid het egter gesê: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Want julle word vandag vir my teenstanders. Moet iemand vandag in Israel doodgemaak word? Weet ek dan nie dat ek vandag koning is oor Israel nie?” Toe sê die koning vir Simeï: “Jy sal nie sterf nie.” En die koning het dit vir hom met 'n eed bevestig. Ook Mefiboset, die kleinseun van Saul, het afgegaan om die koning te ontmoet. Hy het sy voete nie versorg, sy snor nie geknip en selfs sy klere nie gewas nie, van die dag af dat die koning weggegaan het totdat hy weer ongedeerd daar aangekom het. Toe hy in Jerusalem ingaan om die koning te ontmoet, vra die koning vir hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” Daarop het hy geantwoord: “My heer die koning, my slaaf het my mislei. U dienaar het gedink, ek gaan vir my die donkie opsaal en daarop ry en met die koning saamgaan, want u dienaar is mos kreupel. My slaaf het egter u dienaar by my heer die koning gaan beskinder. Maar my heer die koning is soos 'n engel van God; doen maar wat goed is in u oë. Die hele huis van my vader het immers, wat my heer die koning betref, net die dood verdien. En tog het u u dienaar geplaas by dié wat aan u tafel eet. Watter reg het ek dan nog om weer 'n keer na die koning om hulp te roep?” Die koning het vir hom gesê: “Waarom moet jy nog verder jou saak stel? Ek het klaar gepraat: Jy en Siba moet die grond deel. ” Daarop sê Mefiboset vir die koning: “Hy kan ook maar alles neem nadat my heer die koning ongedeerd by sy paleis aangekom het.” Ook Barsillai, 'n man uit Gilead, het van Rogelim af afgegaan en saam met die koning na die Jordaan getrek om hom daar by die Jordaan af te sien. Barsillai was al baie oud, 'n man van tagtig jaar; maar hy het die koning van kos voorsien tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was 'n baie ryk man. Die koning het vir Barsillai gesê: “Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by my in Jerusalem van kos voorsien.” Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Hoeveel dae van my lewensjare is nog oor dat ek saam met die koning na Jerusalem kan opgaan? Ek is nou tagtig jaar oud. Ken ek nog die verskil tussen goed en sleg, of sal ek, u dienaar, nog kan proe wat ek eet of drink, of sal ek nog kan luister na die stemme van sangers en sangeresse? Waarom moet u dienaar nog vir my heer die koning 'n las wees? U dienaar kan nouliks oor die Jordaan gaan saam met die koning, en waarom sou die koning my dan op dié wyse vergoed? Laat ek, u dienaar, asseblief maar omdraai, sodat ek in my tuisdorp naby die graf van my vader en moeder kan sterf. Maar kyk, hier is u dienaar Kimham; laat hy saam met my heer die koning oorgaan. Doen dan aan hom wat goed is in u oë.” Die koning het gesê: “Saam met my sal Kimham dan oorgaan, en ek sal persoonlik aan hom doen wat goed is in jou oë. Alles wat jy van my verwag, sal ek vir jou doen.” Al die manskappe het die Jordaan oorgesteek, en toe het die koning oorgegaan. Die koning het Barsillai gesoen en hom seën toegewens. Hy is terug na sy woonplek. Die koning het verder oorgegaan na Gilgal, en Kimham het saam met hom oorgegaan. Al die manskappe van Juda en ook die helfte van die manskappe van Israel het die koning met die deurtog begelei. Al die manne van Israel kom toe onverwags na die koning en sê vir die koning: “Waarom het ons broers, die manne van Juda, die koning ontvoer en die koning, sy huishouding en al die manne van Dawid saam met hom oor die Jordaan geneem?” Al die manne van Juda het toe teenoor die manne van Israel gereageer: “Omdat die koning na aan ons is! Maar waarom word julle nou kwaad oor hierdie saak? Het ons enigiets van die koning geëet, of enigiets vir onsself weggedra?” Daarop antwoord die manne van Israel die manne van Juda en sê: “Ons het 'n tienvoudige aandeel in die koning, en ook op Dawid het ons groter aanspraak as julle. Waarom verkleineer julle ons dan? Het ons nie eerste voorgestel om ons koning terug te bring nie?” Die reaksie van die manne van Juda was egter heftiger as dié van die manne van Israel. 'n Opstoker met die naam Seba, seun van Bigri, 'n Benjaminiet, was toevallig daar. Hy het op die •ramshoring geblaas en gesê: “Ons het geen aanspraak op Dawid, geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel!” Al die manne van Israel het toe opgetrek, weg van Dawid af, agter Seba, seun van Bigri, aan. Maar die manne van Juda was aan hulle koning se sy van die Jordaan af tot by Jerusalem. Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem aankom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, geneem en hulle geplaas in 'n plek van veilige bewaring. Hy het aan hulle kos voorsien, maar hy het nie by hulle ingegaan nie. Hulle was afgesonder tot die dag van hulle dood – 'n lewenslange weduweeskap. Die koning het vir Amasa gesê: “Roep vir my die manne van Juda binne drie dae op. Jy moet self ook hier kom staan.” Amasa het toe gegaan om Juda op te roep, maar hy is langer opgehou as die vaste tyd wat vir hom bepaal is. Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou gaan Seba, seun van Bigri, ons meer kwaad aandoen as Absalom. Neem jy dan die dienaars van jou heer en sit hom agterna, anders sal hy vir hom versterkte stede kan vind en ons groot skade aandoen. ” Die manne van Joab, die Kreti en Pleti en al die helde het agter hom aan uitgetrek. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba, seun van Bigri, te agtervolg. Hulle was naby die groot klip wat by Gibeon is, maar Amasa het voor hulle daar aangekom. Joab het sy gevegskleed as gewone drag aangehad en bo-oor, om sy heupe, was 'n lyfband met 'n swaard in sy skede vasgemaak. Toe hy vorentoe beweeg, het die swaard uitgeval. Joab het vir Amasa gesê: “Gaan dit goed met jou, my broer?” En toe gryp Joab met die regterhand Amasa se baard om hom te soengroet. Amasa het egter nie rekening gehou met die swaard wat in Joab se ander hand was nie. Hy het hom daarmee in die maag gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgestort het. Hy het gesterf sonder dat hy hom 'n tweede keer gesteek het. Joab en Abisai, sy broer, het toe vir Seba, seun van Bigri, agternagesit. Een van Joab se jong manne het by Amasa bly staan en gesê: “Wie Joab goedgesind is en wie vir Dawid is, volg Joab!” Amasa het nog lê en rondkrul in sy bloed in die middel van die pad, en toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy Amasa uit die pad uit gerol, die veld in. Hy het 'n kledingstuk oor hom gegooi nadat hy gesien het dat elkeen wat by hom kom, gaan staan. Nadat hy uit die pad verwyder is, het al die manne verbygegaan agter Joab aan om Seba, seun van Bigri, te agtervolg. Seba het by al die stamme van Israel langs gegaan na Abel en Bet-Maäga en na al die Beriete. Hulle het byeengekom en die stad binnegegaan, ook agter hom aan. Joab se manne het gekom en hom in Abel-Bet-Maäga beleër. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad opgehoop, sodat dit in posisie was by die verdedigingswal. Terwyl al die manskappe by Joab verwoesting aangerig het om die stadsmuur te laat val, het 'n wyse vrou uit die stad geroep: “Luister, luister! Sê julle asseblief vir Joab, ‘Kom nader hierheen, ek wil met u praat.’ ” Toe hy nader gaan na haar, sê die vrou: “Is u Joab?” “Dit is ek,” antwoord hy. Sy sê toe vir hom: “Luister na die woorde van u dienares.” “Ek luister,” het hy gesê. Daarop sê sy: “In die verlede het hulle altyd gesê, ‘Doen maar net navraag in Abel,’ en so is die saak besleg. Ek praat namens die vredeliewendes van die getroues in Israel. U probeer om 'n stad, ja, 'n moeder in Israel, dood te maak. Waarom wil u die eiendom van die Here verslind?” Joab het egter geantwoord en gesê: “Ek sal dit nooit ooit doen nie! Ek sal nie verslind nie en ek sal nie vernietig nie. Dit is nie waaroor dit gaan nie; maar 'n man uit die heuwelland van Efraim – Seba, seun van Bigri, is sy naam – het sy hand gelig teen die koning, teen Dawid. Lewer hom alleen uit, dan sal ek wegtrek van die stad af.” Toe sê die vrou vir Joab: “Goed, sy kop sal na u van die stadsmuur af gegooi word.” Die vrou het met haar wysheid na al die mense gegaan. Hulle het Seba, seun van Bigri, se kop afgekap en na Joab gegooi. Hy het toe op die ramshoring geblaas, en hulle het uiteengegaan, weg van die stad, elkeen na sy tente toe. Joab het teruggekeer na Jerusalem, na die koning. Joab was in bevel van die hele leër in Israel, en Benaja, seun van Jojada, van die Kreti en Pleti. Adoniram was in bevel van die dwangarbeid, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. Sewa was sekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters. Ook Ira, die man uit Jaïr, het vir Dawid as priester opgetree. In die tyd van Dawid was daar drie agtereenvolgende jare lank hongersnood. Dawid het die teenwoordigheid van die Here opgesoek, en die Here het gesê: “Dit is oor Saul, oor sy huis van bloedskuld, omdat hy die Gibeoniete doodgemaak het.” Toe ontbied die koning die Gibeoniete en praat met hulle. Die Gibeoniete was nie deel van die Israeliete nie, maar was deel van 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het vir hulle 'n eed afgelê, maar Saul het in sy ywer vir die Israeliete en Juda probeer om hulle uit te wis. Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, sodat julle die eiendom van die Here kan seën?” Die Gibeoniete het vir hom gesê: “Dit gaan nie vir ons oor silwer en goud as dit by Saul en sy familie kom nie; dit gaan nie vir ons daaroor om iemand in Israel dood te maak nie.” Toe vra hy: “Wat sê julle dan moet ek vir julle doen?” Hulle het vir die koning gesê: “Die man wat ons vernietig het, wat planne teen ons beraam het, sodat ons uitgewis is sonder enige bestaansreg in die hele gebied van Israel, laat daar sewe manne uit sy nageslag aan ons gegee word – dan sal ons hulle voor die Here aan pale hang in Gibea van Saul, die uitverkorene van die Here. ” Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.” Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, gespaar oor die eed voor die Here tussen hulle, tussen Dawid en Jonatan, seun van Saul. Die koning het Armoni en Mefiboset geneem – die twee seuns van Rispa, dogter van Aja, wat sy vir Saul in die wêreld gebring het – asook die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy in die wêreld gebring het vir Adriël, seun van Barsillai, die man uit Megola. Hy het hulle aan die Gibeoniete oorhandig en dié het hulle voor die Here aan pale gehang op die berg. Die sewe het saam beswyk. Hulle is om die lewe gebring gedurende die eerste dae van die oes, aan die begin van die garsoes. Rispa, dogter van Aja, het 'n roukleed geneem en dit vir haar op die rots oopgesprei, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemelruim op hulle neergestort het. Sy het nie die voëls van die hemel toegelaat om bedags op die lyke toe te sak nie, en ook nie die wilde diere snags nie. Toe daar aan Dawid vertel is wat Rispa, dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het, het hy wat Dawid is, gegaan en die beendere van Saul en sy seun Jonatan gaan haal by die burgers van Jabes in Gilead, wat dit in die geheim verwyder het van die plein in Bet-San, waar die Filistyne hulle opgehang het die dag toe die Filistyne Saul op Gilboa verslaan het. Dawid het die beendere van Saul en Jonatan daarvandaan opgeneem. Hulle het ook die beendere van dié wat aan pale gehang is, bymekaargemaak. Hulle het toe die beendere van Saul en sy seun Jonatan neergelê in die graf van Kis, Saul se vader, in die gebied van Benjamin, in Sela. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. God het die smeekbedes vir die land daarna verhoor. Die Filistyne het toe weer oorlog gemaak met Israel. Dawid het afgetrek, en sy dienaars saam met hom. Hulle het teen die Filistyne geveg, maar Dawid het moeg geword. Jisbi-Benob, uit die nageslag van Rafa, het gedink dat hy Dawid kan verslaan. Die gewig van sy lans was driehonderd sikkel brons, en hy was omgord met 'n nuwe swaard. Abisai, seun van Seruja, het Dawid te hulp gekom, die Filistyn verslaan en hom doodgemaak. Toe het die manne van Dawid onder eed vir hom gesê: “U mag nie weer saam met ons uittrek vir 'n geveg nie. U mag nie die lamp van Israel uitdoof nie.” 'n Tyd daarna was daar nog 'n geveg met die Filistyne in Gob. Dit was toe dat Sibbegai uit Gusa vir Saf, uit die nageslag van Rafa, verslaan het. Toe daar weer 'n geveg was met die Filistyne in Gob, het Elganan, seun van Jaäre-Oregim, uit Betlehem, Goliat uit Gat verslaan. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam. Toe daar weer 'n geveg in Gat was, was daar 'n reus van 'n man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet – vier-en-twintig altesaam. Ook hy het van Rafa afgestam. Hy het Israel uitgetart, maar Jonatan, seun van Samma, die broer van Dawid, het hom verslaan. Hierdie vier het afgestam van Rafa in Gat, maar hulle het gesneuwel aan die hand van Dawid en sy dienaars. Dawid het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. Hy het gesê: “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord, my skuilplek, my verlosser – van geweld het U my verlos. Die Een wat geloof moet word – roep ek uit – is die Here! En van my vyande word ek verlos. Ja, bande van die dood het my omsluit; strome van vernietiging het my verskrik; bande van die •doderyk het my verstrengel; vangstrikke van die dood het my ingewag. In my benoudheid het ek na die Here bly roep; na my God het ek geroep. In sy paleis het Hy my stem gehoor; my hulpgeroep het sy ore bereik. “Toe het die aarde geskud en geruk; die fondamente van die hemel het gebewe. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand: Rook het uit sy neus opgestyg, 'n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit opgevlam. Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; diepe duisternis was onder sy voete. Hy het op 'n gerub gery, Hy het gevlieg, verskyn op die vlerke van die wind. Hy het van die donker rondom Hom 'n beskutting gemaak, swaar wolke, waaruit water neersif. Uit die glans voor Hom het gloeiende kole vuur gebrand. Die Here laat uit die hemelruim die donder weerklink; die Allerhoogste laat sy stem hoor. Hy stuur sy pyle en jaag hulle uiteen, weerligstrale, en bring hulle in verwarring. Die beddings van die see het sigbaar geword; die fondamente van die aarde is ontbloot deur die dreiging van die Here, deur die windvlaag uit sy neus. “ Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, my gegryp, my uit die watermassa opgetrek. Hy het my weggeruk van my magtige vyand, weg van my haters, want hulle was sterker as ek. Op die dag van my teenspoed het hulle my ingewag, maar die Here was vir my 'n stut: Hy het my na 'n oopte uitgelei; Hy het my bevry, omdat Hy my goedgesind is. “Die Here het aan my goed gedoen, op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed. Want ek het op die Here se paaie gebly; en my nie skuldig gemaak voor my God nie. Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte – daarvan wyk ek nie af nie. Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sonde. Die Here het my vergoed, op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë. “Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree U berekenend op! 'n Magtelose volk word deur U verlos, en u oë hou hoogmoediges dop; U verneder hulle. Ja, U is my lig, Here; die Here verlig my donkerte. Ja, met U hardloop ek oor 'n skans, met my God spring ek oor 'n muur. “God, sy weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is 'n rots buiten ons God? God is my sterk toevlug; Hy maak my pad volmaak. Hy maak my voete soos dié van wildsbokke; op hoë plekke laat Hy my vasstaan. Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, sodat my arms 'n bronsboog kan span. “ U het vir my u skild van verlossing gegee; u antwoord maak my sterk. U skep ruimte vir my voetstappe; my enkels swik nie. Ek agtervolg my vyande en delg hulle uit; ek draai nie om voordat ek hulle uitgewis het nie. Ek wis hulle uit, ek verpletter hulle, sodat hulle nie opstaan nie; hulle val onder my voete. U omgord my met krag vir die geveg; U laat my teenstanders die knie voor my buig. My vyande – U het hulle vir my laat vlug; en my haters – ek kon hulle vernietig. Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie, selfs na die Here gekyk, maar Hy het hulle nie geantwoord nie. Ek het hulle fyngestamp soos die stof van die aarde; soos modder in die strate het ek hulle verpoeier, ek het hulle vertrap. U het my van die gestry onder my volk bevry; U beskerm my, die hoof van nasies. Mense wat ek nie geken het nie, dien my; vreemdes veins onderdanigheid aan my; sodra hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my. Vreemdes verloor moed; bewend kom hulle uit hulle kerkers. “Die Here leef! Lofwaardig is my rots; die God wat die rots van my verlossing is, is verhewe! God is die Een wat my toelaat om wraak te neem; Hy onderwerp volke aan my, Hy wat my weglei van my vyande. Ja, U verhoog my bo my teenstanders; van manne van geweld ruk U my weg. Daarom sal ek U prys onder die nasies, Here; u Naam sal ek besing. Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee, wat troue liefde bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en sy nageslag vir altyd. ” Dit is die laaste woorde van Dawid: “Die uitspraak van Dawid, seun van Isai, die uitspraak van die man wat hoog geplaas is, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde van die liedere van Israel. Die Gees van die Here spreek deur my, sy woord is op my tong. “Die God van Israel het met my gepraat, die Rots van Israel het gesê, ‘Hy wat regverdig heers onder mense, hy wat in die vrees van die Here heers, is soos die môrelig teen sonop op 'n wolklose oggend; deur die helderheid wat die reën bring, spruit groen gras uit die aarde.’ “Ja, is dit nie soos my huis by God is nie? Want Hy het 'n ewige verbond met my gevestig, in alle opsigte georden en beskerm. Ja, al my heil en alle wense, sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie? “Maar skurke – soos dorings word hulle almal uitmekaar gewaai; want mens vat nie met die hand daaraan nie. Wie aan hulle raak, het in sy hand 'n yster, of die steel van 'n vegspies; en hulle word net daar heeltemal verbrand.” Dit is die name van Dawid se helde: Joseb-Bassebet uit Tagkemon. Hy was die hoof van die drie. Hy het sy spies geswaai oor agthonderd man wat by een geleentheid deurboor is. Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, seun van 'n man uit Agoag. As een van die drie, die helde, was hy by Dawid toe hulle die Filistyne uitgetart het wat daar vir die geveg byeen was. Toe die manne van Israel teruggetrek het, het hy vasgestaan en die Filistyne neergevel totdat sy hand so moeg was dat dit aan die swaard vasgekramp was. Die Here het daardie dag 'n groot oorwinning bewerk. Die manskappe het teruggedraai na Eleasar – net om die dooies te plunder. Ná hom was daar Samma, seun van Agee, uit Harar. Die Filistyne het byeengekom in 'n kamp waar daar 'n stuk land vol lensies was. Toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, het Samma stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het 'n groot oorwinning bewerk. 'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan en in die oestyd by Dawid aangekom in die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. Dawid was vol heimwee en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” Die drie helde het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar hy wou dit nie drink nie, en het dit vir die Here uitgegiet. Hy het gesê: “Mag die Here my daarvan weerhou om hierdie water te drink! Is dit nie die bloed van die manne wat hulle lewens gewaag het nie?” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drietal helde gedoen het. Abisai, seun van Seruja en Joab se broer, was hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai en hy het vir hom naam gemaak onder die drie. Was hy dan nie meer geëerd as die drie nie? Hy was vir hulle 'n •aanvoerder, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dan was daar Benaja, seun van Jojada, 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n indrukwekkende man, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies in sy hand gehad, en Benaja het na hom afgegaan met 'n stok. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het vir hom naam gemaak onder die drie helde. Hy was meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel by sy lyfwag. Onder die dertig helde was daar: Asael, Joab se broer, Elganan, seun van Dodo uit Betlehem, Samma uit Garod, Elika uit Garod, Geles uit Pelet, Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa, Abiëser uit Anatot, Mebunnai uit Gusa, Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa, Geleb, seun van Baäna uit Netofa, Ittai, seun van Ribai, uit Gibea van die Benjaminiete, Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs, Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim, Eljagba uit Saälbon, uit die nageslag van Jasen, Jonatan, seun van Samma uit Harar, Agiam, seun van Sarar uit Arar, Elifelet, seun van Agasbai, uit Maäga, Eliam, seun van Agitofel uit Gilo, Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab, Jigal, seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad, Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, seun van Seruja, Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter, en Urija die Hetiet. Altesaam was hulle sewe-en-dertig. Die toorn van die Here het weer teen Israel ontbrand. Hy het Dawid teen hulle opgesteek met die woorde: “Gaan tel Israel en Juda.” Toe sê die koning vir Joab, die leëraanvoerder wat by hom was: “Gaan rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berseba, en maak 'n opname van die manskappe, sodat ek kan weet hoeveel manskappe daar is.” Maar Joab het vir die koning gesê: “Mag die Here u God by die manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is, terwyl my heer die koning dit sien! Maar, my heer die koning, waarom wil u dit so graag doen?” Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab en die leëraanvoerders, en Joab en die leëraanvoerders het van die koning af uitgegaan om 'n opname te maak van die manskappe in Israel. Hulle het die Jordaan oorgesteek en kamp opgeslaan by Aroër, suid van die dorp in die middel van die dal Gad, aan die kant van Jaeser. Daarna het hulle in Gilead ingegaan, na die streek van Tagtim-Godsi. Hulle het in Dan-Jaän aangekom en weggedraai na Sidon. Toe het hulle by die versterkte stad Tirus aangekom, en ook by al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete, en daarna uitbeweeg na die suide van Juda by Berseba. So het hulle rondgegaan deur die hele land, en ná nege maande en twintig dae weer in Jerusalem aangekom. Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan die koning oorhandig: In Israel was daar agthonderdduisend weerbare manne gewapen met swaarde, en die weerbare manne van Juda was vyfhonderdduisend man. Maar Dawid se gewete het hom gepla nadat hy die manskappe getel het. Dawid sê toe vir die Here: “Ek het ernstig gesondig deur wat ek gedoen het. Here, skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.” Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die woord van die Here tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom: “Gaan sê vir Dawid, ‘So sê die Here: “Drie moontlikhede lê Ek aan jou voor; kies vir jou een daarvan, sodat Ek dit aan jou kan doen.” ’ ” Gad het by Dawid gekom en hom dit meegedeel. Hy het vir hom gesê: “Moet daar sewe jaar hongersnood oor jou in jou land kom; of moet jy drie maande lank op die vlug wees voor jou teenstanders, terwyl hulle jou agtervolg; of moet daar drie dae lank pessiekte wees in jou land? Oorweeg dit en kyk watter antwoord ek moet terugneem na Hom wat my gestuur het.” Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud. Mag ons tog in die hand van die Here val, want groot is sy ontferming. Maar mag ek nie in die hande van mense val nie.” Die Here het toe 'n pessiekte in Israel beskik, van die oggend af tot die vasgestelde tyd. Van Dan tot Berseba het sewentigduisend man gesterf. En toe die engel sy hand na Jerusalem uitsteek om dit te verwoes, was die Here jammer oor die ramp. Hy sê toe vir die engel, wat besig was om verwoesting te saai onder die manskappe: “Dit is nou genoeg, trek jou hand terug!” Die •engel van die Here was toe naby die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. Dawid het met die Here gepraat toe hy die engel sien wat die manskappe tref. Hy het gesê: “Kyk, ek is die een wat gesondig het, ek is die een wat afgedwaal het. Hierdie manne is maar kleinvee. Wat het hulle gedoen? Laat u hand asseblief teen my en my familie wees.” Gad het dieselfde dag nog by Dawid gekom en vir hom gesê: “Gaan op na die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, en rig vir die Here daar 'n altaar op.” Dawid het, soos die Here deur Gad opdrag gegee het, opgegaan, en toe Arauna afkyk en die koning en sy dienaars na hom sien aankom, het hy uitgegaan en voor die koning diep neergebuig met sy gesig teen die grond. Arauna sê toe: “Waarom kom my heer die koning na sy dienaar?” Daarop antwoord Dawid: “Om die dorsvloer by jou te koop, om vir die Here 'n altaar te bou, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” Arauna het egter vir Dawid gesê: “My heer die koning kan neem en offer soos wat goed is in sy oë. Kyk, daar is die beeste vir 'n •brandoffer, en die dorssleë en jukke van die beeste as brandhout. Dit alles, o koning, skenk Arauna aan die koning.” Arauna het ook vir die koning gesê: “Mag die Here u God u aanvaar!” Maar die koning het Arauna geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen 'n prys. Ek gaan nie aan die Here my God brandoffers bring sonder uitgawes nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkel silwer. Dawid het daar vir die Here 'n altaar gebou en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Die Here het toe die smeekbedes vir die land verhoor, en die plaag is van Israel afgewend. Toe koning Dawid oud en gevorderd in jare was, het hulle hom met klere toegemaak, maar hy kon nie warm word nie. Sy dienaars sê toe vir hom: “Laat hulle vir my heer die koning 'n jong meisie, 'n maagd, soek wat by die koning diens kan doen. Sy kan die koning versorg en teen u bors lê, sodat my heer die koning warm kan word.” Hulle het toe in die hele gebied van Israel na 'n mooi jong meisie gesoek. Hulle het Abisag, uit Sunem, gekry en haar vir die koning gebring. Die jong meisie was besonder mooi. Sy het die koning versorg en het hom bygestaan, maar die koning het nie met haar intiem verkeer nie. Adonia, seun van Gaggit, het homself verhef deur te sê: “Ek is die een wat koning gaan word!” Hy het vir homself strydwaens en spanne perde aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit hardloop. Sy lewe lank het sy vader hom nie tereggewys deur te sê, “Hoekom tree jy so op?” nie. Ook hy was 'n besonder aantreklike man. Sy moeder het hom ná Absalom in die wêreld gebring. Adonia het met Joab, seun van Seruja, en met Abjatar, die priester, onderhandel, en hulle het hulle gewig agter hom ingegooi. Sadok, die priester, Benaja, seun van Jojada, Natan, die profeet, asook Simeï en Reï en die helde in diens van Dawid, het hulle nie by Adonia geskaar nie. Adonia het toe kleinvee, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by die klip van Sogelet, wat langs En-Roghel is. Hy het al sy broers, die koning se seuns, uitgenooi, asook al die manne van Juda, die amptenare van die koning. Maar Natan, die profeet, en Benaja, asook die helde en sy broer Salomo, het hy nie genooi nie. Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het u nie gehoor dat Adonia, seun van Gaggit, koning geword het, terwyl ons heer Dawid nie daarvan weet nie? Kom dan nou, laat ek u tog met raad bedien, sodat u u lewe en die lewe van u seun Salomo kan red. Gaan in na koning Dawid en sê vir hom, ‘Het u, my heer die koning, nie self 'n eed afgelê vir u dienares nie, met die woorde: “Salomo, jou seun, sal beslis ná my koning word. Dit is hy wat op my troon sal sit.” Waarom het Adonia dan koning geword?’ Kyk, terwyl u dan nog daar besig is om met die koning te praat, sal ek ná u binnekom en u woorde beaam.” Batseba gaan toe in na die koning in die kamer. Die koning was baie oud, en Abisag, uit Sunem, het die koning bygestaan. Batseba het gekniel en diep gebuig voor die koning. Die koning sê toe: “Wat het jy op die hart?” Sy het hom geantwoord: “My heer, u het self by die Here u God, vir u dienares 'n eed afgelê, ‘Salomo, jou seun, sal beslis ná my koning word. Dit is hy wat op my troon sal sit.’ En kyk, nou het Adonia koning geword, en u, my heer die koning, weet dit nie eers nie. Hy het 'n groot aantal beeste, vetgemaakte kalwers en kleinvee geslag en al die seuns van die koning, en ook Abjatar, die priester, en Joab, die bevelvoerder van die leër, genooi. Salomo, u dienaar, het hy nie genooi nie. En nou, my heer die koning: Die oë van die hele Israel is op u gerig om aan hulle bekend te maak wie op die troon van my heer die koning gaan sit ná hom. Dit kan gebeur dat, sodra my heer die koning by sy voorouers gaan rus, ek en my seun Salomo as skuldiges uitgemaak sal word.” Juis toe, terwyl sy nog besig is om met die koning te praat, kom Natan, die profeet, binne. Hulle het vir die koning die aankondiging gemaak: “Natan, die profeet, is hier!” Hy het ingekom tot voor die koning en toe diep gebuig voor die koning, met sy gesig teen die grond. Natan sê toe: “My heer die koning, is dit u wat gesê het, ‘Adonia sal ná my koning word; dit is hy wat op my troon sal sit’? Want hy het vandag afgegaan en 'n groot aantal beeste, vetgemaakte kalwers en kleinvee geslag, en al die seuns van die koning, die leëraanvoerders en Abjatar, die priester, genooi. Hulle is juis besig om voor hom te eet en te drink, en hulle sê, ‘Lank lewe koning Adonia!’ Maar vir my, ek wat u dienaar is, en Sadok, die priester, en Benaja, seun van Jojada, en Salomo, u dienaar, het hy nie genooi nie. As hierdie saak van u af kom, my heer die koning, dan het u nie aan u dienaar bekend gemaak wie ná u op die troon van my heer die koning sal sit nie.” Koning Dawid het hierop gereageer en gesê: “Ontbied Batseba vir my!” Toe sy in die koning se teenwoordigheid kom, het sy voor die koning gaan staan. Die koning lê toe 'n eed af en sê: “So waar as die Here leef, Hy wat my lewe uit alle nood gered het: Wat ek vir jou gesweer het by die Here, die God van Israel, met die woorde, ‘Salomo, jou seun, sal beslis ná my koning word; hy is die een wat in my plek op my troon sal sit’, presies dít gaan ek vandag doen.” Batseba het gekniel met haar gesig na die grond, en diep voor die koning gebuig. Sy het gesê: “Mag my heer, koning Dawid, vir ewig lewe!” Koning Dawid het gesê: “Ontbied vir my Sadok, die priester, Natan, die profeet, en Benaja, seun van Jojada. ” Toe hulle voor die koning verskyn, het die koning vir hulle gesê: “Neem die dienaars van julle heer met julle saam, en laat my seun Salomo op die muil ry wat aan my behoort. Julle moet hom na Gihon laat afgaan, en dan moet Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar salf as koning oor Israel. Blaas op die •ramshoring en roep dan uit, ‘Lank lewe koning Salomo!’ Kom dan weer hierheen op, agter hom aan. Hy moet inkom en op my troon gaan sit. Hy is die een wat in my plek koning moet word – hom het ek daarvoor bestem om 'n leier oor Israel en oor Juda te wees.” Benaja, seun van Jojada, het die koning geantwoord en gesê: “Amen! Mag die Here, die God van my heer die koning, dit bekragtig! Soos die Here met my heer die koning was, mag Hy net so met Salomo wees! Mag Hy sy troon nog groter maak as die troon van my heer, koning Dawid.” Daarop het Sadok, die priester, Natan, die profeet, Benaja, seun van Jojada, en die Kreti en Pleti afgegaan, en Salomo laat ry op koning Dawid se muil, en hom na Gihon geneem. Sadok, die priester, het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf. Hulle het op die ramshoring geblaas en die hele volk het geroep: “Lank lewe koning Salomo!” Die hele volk het toe agter hom aan gegaan. Terwyl hulle op fluite blaas, was hulle uitbundig, met krete van vreugde. Die aarde wou skeur van hulle juigkrete. Adonia en ook al die genooides wat by hom was, het dit gehoor net toe hulle klaar geëet het. Toe Joab die geluid van die ramshoring hoor, het hy gesê: “Waarom klink daar so 'n rumoer uit die stad op?” Hy was nog besig om te praat, toe kom Jonatan, seun van Abjatar, die priester, skielik daar aan. Adonia sê toe: “Kom in, want jy is 'n bekwame man en jy kan net goeie nuus bring. ” Maar Jonatan het geantwoord en vir Adonia gesê: “Inteendeel! Ons heer, koning Dawid, het Salomo koning gemaak! Die koning het saam met hom vir Sadok, die priester, Natan, die profeet, Benaja, seun van Jojada, en die Kreti en Pleti gestuur, en hulle het hom op die koning se muil laat ry. Sadok, die priester, en Natan, die profeet, het hom by Gihon as koning gesalf. Hulle het daarvandaan uitbundig opgegaan, en die stad is in rep en roer. Dit is die geluid wat julle hoor. Salomo het nie net op die koninklike troon gaan sit nie, maar die amptenare van die koning het ook gekom om ons heer, koning Dawid, geluk te wens met die woorde, ‘Mag u God die roem van Salomo nog groter maak as u roem, en mag sy troon nog groter wees as u troon!’ Die koning het toe op die bed in aanbidding gebuig; hy het ook gesê, ‘Die Here, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat dit so beskik het dat iemand vandag op my troon sit, terwyl ek dit met my eie oë sien.’ ” Al die genooides wat hulle by Adonia geskaar het, het begin bewe en opgespring; elkeen het sy eie koers ingeslaan. Adonia het Salomo gevrees; hy het opgespring, gegaan en die horings van die altaar vasgegryp. Daar is aan Salomo berig gebring: “Kyk, Adonia vrees koning Salomo! Hy het sowaar die horings van die altaar beetgepak en sê, ‘Koning Salomo moet eers vir my sweer dat hy sy dienaar nie met die swaard sal doodmaak nie.’ ” Daarop het Salomo gesê: “As hy 'n betroubare man is, sal daar van hom nie 'n enkele haar op die grond val nie; maar as daar kwaad in hom gevind word, sal hy sterf.” Koning Salomo het toe iemand gestuur om hom van die altaar af te haal. Hy het gekom en diep neergebuig voor koning Salomo. Toe sê Salomo vir hom: “Gaan na jou huis toe!” Toe die tyd nader kom vir Dawid om te sterf, het hy opdragte aan sy seun Salomo gegee: “Ek gaan die weg van die hele aarde. Wees onwrikbaar en wys jy is 'n man. Kom die verpligting na wat die Here jou God jou oplê. Doen dit deur sy paaie te volg, deur sy vaste voorskrifte, sy gebooie, sy beslissings en bepalings na te kom, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, sodat jy sukses kan behaal in alles wat jy aanpak en oral waarheen jy jou wend. Doen dit, sodat die Here sy woord wat Hy oor my gespreek het, gestand kan doen, naamlik, ‘As jou seuns let op hulle gedrag deur getrou, met hulle hele hart en hulle hele wese, voor My te leef, dan’ het Hy gesê, ‘sal daar nooit vir jou iemand ontbreek op die troon van Israel nie’. “Jy self weet ook wat Joab, seun van Seruja, aan my gedoen het, wat hy aan die twee bevelvoerders van die leërs van Israel, aan Abner, seun van Ner, en aan Amasa, seun van Jeter, gedoen het. Hy het hulle vermoor en die bloedskuld van oorlog op hom gelaai in vredestyd. Hy het die bloedskuld van oorlog op die gordel om sy heupe en die sandale aan sy voete laat kom. Tree dan op volgens jou wysheid. Sy grys hare mag jy nie in vrede na die •doderyk laat afgaan nie. Aan die seuns van Barsillai, die man uit Gilead, moet jy egter welwillendheid bewys. Hulle moet onder dié wees wat aan jou tafel eet, want so het hulle my ook tegemoetgekom toe ek gevlug het voor jou broer Absalom. Kyk, by jou het jy ook Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet uit Bagurim. Hy is die een wat my gruwelik uitgeskel het die dag toe ek na Maganajim gegaan het. Maar hy is ook die een wat afgegaan het om my by die Jordaan te ontmoet, en ek het vir hom by die Here gesweer en gesê, ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’ Maar nou mag jy hom nie ongestraf laat nie. Jy is immers 'n slim man; jy sal self weet wat om aan hom te doen. Jy moet sy grys hare met bloed in die doderyk laat afgaan.” Daarna het Dawid by sy voorouers gaan rus, en hy is in die Stad van Dawid begrawe. Die tydperk wat Dawid koning was oor Israel, was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning. Salomo het op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap was stewig gevestig. Adonia, seun van Gaggit, het na Batseba, die moeder van Salomo, gekom. Sy het gevra: “Beteken jou koms vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, vrede!” Hy sê toe: “Ek wil graag 'n woord met u praat.” Sy het gesê: “Praat!” Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap my toekom, en dat die hele Israel se oë op my gerig was om koning te word. Die koningskap het egter oorgegaan na my broer, omdat dit deur die Here vir hom bedoel was. Nou is daar egter een guns wat ek van u vra; moet my dit nie weier nie.” Sy het vir hom gesê: “Praat!” Hy sê toe: “Praat asseblief met koning Salomo, want hy sal u dit nie weier nie, om Abisag uit Sunem vir my as vrou te gee.” Daarop sê Batseba: “Goed, ek sal oor jou met die koning praat.” Batseba gaan toe na koning Salomo om oor Adonia met hom te praat. Die koning het opgestaan, haar tegemoetgegaan en diep voor haar gebuig. Hy het op sy troon gaan sit en vir die koninginmoeder 'n troon laat neersit, en sy het aan sy •regterhand gaan sit. Sy sê toe: “Daar is een klein gunsie wat ek van jou wil vra – moet my dit nie weier nie.” Die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, moeder, want ek sal u dit nie weier nie.” Daarop sê sy: “Laat Abisag, uit Sunem, aan Adonia, jou broer, as vrou gegee word.” Koning Salomo het geantwoord en vir sy moeder gesê: “En waarom vra u Abisag, uit Sunem, vir Adonia? Vra dan maar die koningskap ook vir hom, want hy is mos my broer wat ouer is as ek – ja, vir hom en vir Abjatar, die priester, en vir Joab, seun van Seruja.” Toe sweer Salomo by die Here en sê: “Mag God my swaar straf as Adonia nie hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek het nie. Daarom, so waar as die Here leef, wat my aangestel en my op die troon van my vader Dawid laat sit het, en wat vir my 'n koningshuis voorsien het soos Hy beloof het: Vandag nog word Adonia om die lewe gebring!” Koning Salomo het dit aan Benaja, seun van Jojada, opgedra. Hy het Adonia aangeval, en hy het gesterf. Vir Abjatar, die priester, het die koning gesê: “Na Anatot moet jy gaan, na jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here, my Heer, voor my vader Dawid gedra het, en omdat jy jou onderwerp het aan al die vernedering wat my vader moes deurmaak. ” Salomo het Abjatar verdryf, sodat hy nie meer priester van die Here was nie, om so die woord van die Here te vervul wat Hy in Silo oor die huis van Eli aangekondig het. Die berig het Joab bereik, want Joab het hom by Adonia geskaar, alhoewel hy hom nie by Absalom geskaar het nie. Joab vlug toe na die tent van die Here en gryp die horings van die altaar vas. Aan koning Salomo is berig gebring: “Joab het gevlug na die tent van die Here. Kyk, hy is daar langs die altaar!” Salomo stuur toe vir Benaja, seun van Jojada, met die opdrag: “Gaan val hom aan!” Benaja het by die tent van die Here aangekom en vir Joab gesê: “So sê die koning, ‘Kom uit!’ ” Maar hy het gesê: “Nee, want hier wil ek sterf!” Benaja het toe aan die koning verslag gelewer: “Dit is wat Joab gesê het, en dit is wat hy my geantwoord het.” Die koning sê toe vir hom: “Doen dan wat hy gesê het. Val hom aan en begrawe hom, en verwyder so die bloed van my en my familie wat Joab sonder rede gestort het. Mag die Here sy bloed op sy eie kop laat neerkom, hy wat twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en met die swaard vermoor het sonder my vader Dawid se medewete: Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jeter, die bevelvoerder van die leër van Juda. Mag hulle bloed neerkom op die kop van Joab en op die kop van sy nageslag vir altyd; maar mag daar vir Dawid en sy nageslag, sy huis en sy troon vir altyd voorspoed wees van die kant van die Here. ” Benaja, seun van Jojada, het toe gegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die woestyn. Die koning het Benaja, seun van Jojada, daarna in sy plek aangestel oor die leër, en die koning het Sadok, die priester, aangestel in die plek van Abjatar. Die koning het Simeï toe ontbied en vir hom gesê: “Bou vir jou 'n huis in Jerusalem en woon daar. Maar jy mag nie uit die stad uitgaan nie, nêrens heen nie. En die dag wanneer jy uitgaan en die Kidrondal oorsteek – wees doodseker daarvan dat jy dan beslis sal sterf. Jou bloed sal op jou eie kop wees. ” Daarop het Simeï vir die koning gesê: “Die voorwaarde wat my heer die koning stel, is goed; u dienaar sal so maak.” Simeï het toe vir 'n lang tyd in Jerusalem gebly; maar ná verloop van drie jaar het twee slawe wat aan Simeï behoort, weggeloop na Agis, seun van Maäga, die koning van Gat. Aan Simeï is berig gebring: “Kyk, jou slawe is in Gat.” Simeï het toe gereedgemaak, sy donkie opgesaal en na Gat, na Agis, gegaan om sy slawe te soek. So het Simeï dan gegaan en sy slawe teruggebring uit Gat. Salomo is ingelig dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan en teruggekeer het. Die koning het Simeï ontbied. Hy sê toe vir hom: “Het ek jou nie by die Here laat sweer en jou gewaarsku, ‘Die dag wanneer jy uitgaan en êrens heen vertrek, moet jy doodseker daarvan wees dat jy beslis sal sterf’ nie? Jy het nog vir my gesê, ‘Die voorwaarde is goed, ek sal luister.’ Waarom het jy nie die eed voor die Here nagekom, en ook die bevel wat ek jou opgelê het nie?” Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet self van al die kwaad, waarvan jy diep in jou hart bewus is, wat jy my vader Dawid aangedoen het. Die Here laat al jou boosheid op jou eie kop neerkom. Maar koning Salomo is geseënd, en die troon van Dawid sal vir altyd voor die Here gevestig bly.” Die koning het toe vir Benaja, seun van Jojada, opdrag gegee. Hy het uitgegaan en Simeï aangeval, en hy het gesterf. Die koningskap was toe stewig in die hand van Salomo. Salomo het die skoonseun van die farao, die koning van Egipte, geword. Hy het die dogter van die farao as vrou geneem. Hy het haar na die Stad van Dawid gebring, totdat hy klaar was met die bou van sy paleis en die huis van die Here, en met die muur rondom Jerusalem. Die volk het nog steeds net op die offerhoogtes geoffer, omdat 'n huis vir die Naam van die Here tot in daardie tyd nog nie gebou was nie. Salomo het sy liefde vir die Here getoon deur die vaste voorskrifte van Dawid, sy vader, te volg, behalwe dat ook hy nog steeds op die offerhoogtes geoffer en wierook gebrand het. Salomo gaan toe na Gibeon om daar te offer, want dit was die belangrikste offerhoogte. 'n Duisend •brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer. By Gibeon het die Here in die nag in 'n droom aan Salomo verskyn. God het gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U. U het hierdie oorvloedige troue liefde teenoor hom volgehou en aan hom 'n seun gegee wat op sy troon sit, soos dit vandag is. En nou, Here my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is 'n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, 'n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. Gee dan aan u dienskneg 'n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?” Dit was goed in die oë van die Heer dat Salomo juis dit gevra het. God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself 'n lang lewe gevra het, nie vir jouself rykdom gevra het, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – kyk, Ek voldoen aan jou versoek: Ja, Ek gee aan jou 'n wyse en verstandige hart, sodat daar voor jou niemand was soos jy nie, en ná jou niemand soos jy sal opstaan nie. Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: sowel rykdom as eer, sodat, solank jy leef, daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie. As jy my paaie volg soos jou vader Dawid, deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, sal Ek aan jou 'n lang lewe gee.” Salomo word toe wakker, en sowaar, dit was 'n droom! Hy het in Jerusalem aangekom en voor die verbondsark van die Heer gaan staan. Hy het brandoffers gebring en •maaltydoffers geoffer en 'n feesmaal gehou vir al sy amptenare. Daarna het twee vroue wat prostitute was, na die koning gekom en voor hom gaan staan. Die een vrou het gesê: “Asseblief, my heer! Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het by haar in die huis geboorte geskenk. Op die derde dag nadat ek geboorte geskenk het, het ook hierdie vrou geboorte geskenk. Ons was saam; daar was geen buitestander by ons in die huis nie, net die twee van ons was in die huis. Die seuntjie van hierdie vrou is in die nag dood, want sy het op hom gelê. Maar in die middel van die nag het sy opgestaan en my seuntjie langs my gevat terwyl u dienares geslaap het. Sy het hom teen haar bors neergelê, en haar dooie seuntjie het sy teen my bors neergelê. Toe ek die oggend opstaan om my seuntjie te voed, toe is hy dood! Maar toe ek hom die oggend goed bekyk, sowaar, toe is dit nie my seuntjie wat ek in die wêreld gebring het nie!” Die ander vrou sê toe: “Nee! My seuntjie is die lewende een! Jou seuntjie is die dooie een!” Die eerste vrou het egter volgehou: “Nee! Jou seuntjie is die dooie een! My seuntjie is die lewende een!” So het hulle voor die koning gestry. Die koning het gesê: “Hierdie een hou vol, ‘Dit is my seun, die lewende een, en jou seun is die dooie een.’ En daardie een hou vol, ‘Nee! Jou seun is die dooie een, en my seun die lewende.’ ” Toe sê die koning: “Bring vir my 'n swaard.” Hulle bring toe die swaard voor die koning. Daarna sê die koning: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte vir die een vrou en die ander helfte vir die ander vrou.” Maar die vrou wie se kind die lewende een was, praat toe met die koning omdat haar deernis vir haar seuntjie haar oorweldig het. Sy het vir die koning gesê: “Asseblief, my heer! Gee liewer die lewende kindjie vir haar – moet hom net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het volgehou: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!” Daarop het die koning gereageer deur te sê: “Gee vir die eerste vrou die lewende kindjie. Moet hom glad nie doodmaak nie! Sy is sy ma.” Toe die hele Israel hoor van die beslissing wat die koning gelewer het, het hulle vir die koning ontsag gehad, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om die reg te handhaaf. Koning Salomo was koning oor die hele Israel. Dit was die hoofamptenare wat hy gehad het: Asarja, seun van Sadok, was die hoëpriester; Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was sekretarisse; Josafat, seun van Agilud, was die herout. Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die leër; Sadok en Abjatar was priesters; Asarja, seun van Natan, was in bevel van die landvoogde; Sabud, seun van Natan, 'n priester, was die vertroueling van die koning; Agisar was hoof van die hofhouding; Adoniram, seun van Abda, was in bevel van die dwangarbeid. Salomo het twaalf landvoogde oor die hele Israel gehad. Hulle het aan die koning en sy hofhouding kos voorsien. Elkeen moes kos voorsien vir een maand in die jaar. Dit was hulle name: Ben-Gur in die heuwelland van Efraim; Ben-Deker in Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan; Ben-Gesed in Arubbot – sy verantwoordelikheid was Sogo en die hele Gefergebied; Ben-Abinadab in die hele heuwelland van Dor – Tafat, dogter van Salomo, was sy vrou; Baäna, die seun van Agilud, in Taänag en Megiddo, asook die hele Bet-San wat langs Saretan lê, van onderkant Jisreël af, van Bet-San na Abel-Megola tot anderkant Jokmoam; Ben-Geber in Ramot in Gilead – hy was in beheer van Gawwoot-Jaïr, wat in Gilead is; Jaïr was 'n seun van Manasse; hy was ook in beheer van die landstreek van Argob, wat in Basan is, sestig groot ommuurde stede met bronssluitbalke; Aginadab, seun van Iddo, in Maganajim; Agimaäs in Naftali – ook hy het 'n dogter van Salomo, Basemat, as vrou geneem; Baäna, seun van Gusai, in Aser en Alot; Josafat, seun van Paruag, in Issaskar; Simeï, seun van Ela, in Benjamin; Geber, seun van Uri, in die landstreek Gilead, die land van Sihon, koning van die Amoriete, en van Og, die koning van Basan. Daar was net een landvoog in dié gebied. Die mense van Juda en Israel was baie, so talryk soos die sand wat langs die see is, hulle het geëet en gedrink en was gelukkig. Salomo was die heerser in al die koninkryke, van die Rivier af na die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte. Hulle was aan Salomo skatpligtig en het hom gedien solank hy geleef het. Die voedsel gelewer aan Salomo vir een dag was dertig kor gesifte meel en sestig kor gewone meel; tien vetgemaakte beeste en twintig beeste van die veld af; 'n honderd stuks kleinvee, afgesien van rooitakbokke, gaselle, hartbeeste en gevoerde pluimvee. Ja, hy het oor die hele gebied wes van die Rivier regeer: van Tifsag tot by Gasa, oor al die konings wes van die Rivier. Hy het rondom, aan alle kante, vrede gehad. Juda en Israel het toe veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot Berseba, so lank as wat Salomo geleef het. Salomo het vierduisend stalle vir die perde van sy strydwamag gehad, en die bemanning van sy strydwaens was twaalfduisend. Daardie landvoogde moes kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat by die tafel van koning Salomo aangesit het, elkeen in die maand aan hom toegewys. Hulle het niks laat kortkom nie, ook nie die gars en strooi vir die perde van die strydwaens en die pakperde nie. Hulle het dit gebring na die plek waarheen elkeen gewoond was om dit te neem. God het aan Salomo wysheid gegee – 'n besondere insig en begrip so omvangryk soos die sand wat langs die seestrand is. Die wysheid van Salomo was omvattender as die wysheid van al die mense uit die ooste, en as al die wysheid van Egipte. Hy was wyser as enige mens, wyser as Etan die man uit Esrag, en as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Hy was beroemd onder al die omliggende nasies. Hy het drieduisend spreuke gedig, en eenduisend-en-vyf liedere. Hy het gedig oor bome – van die seder wat op die Libanon is tot die marjolein wat uit die mure groei. Hy het gedig oor diere, oor voëls, oor kruipende diere en oor visse. Mense uit al die volke het gekom om die wysheid van Salomo te hoor; hulle het gekom van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het. Hiram, die koning van Tirus, het sy amptenare na Salomo gestuur, want hy het gehoor dat hulle hom as koning gesalf het in die plek van sy vader. Hiram was immers altyd 'n vriend van Dawid. Salomo stuur toe aan Hiram 'n boodskap: “ U weet self dat my vader Dawid nie in staat was om 'n •tempel vir die Naam van die Here sy God te bou nie, vanweë die oorlog wat sy vyande aan alle kante teen hom gevoer het, totdat die Here hulle aan hom onderwerp het. Maar nou het die Here my God vir my rus gegee aan alle kante. Daar is geen teenstander en geen dreigende onheil nie. Kyk, ek dink daaraan om 'n tempel vir die Naam van die Here my God te bou, soos die Here vir my vader Dawid gesê het, ‘Jou seun wat Ek in jou plek op jou troon sal plaas, dit is hy wat die tempel vir my Naam sal bou.’ Gee dan nou opdrag, sodat daar vir my seders gekap word in die Libanon. My dienaars sal u dienaars bystaan. Die loon vir u dienaars sal ek aan u gee, wat ook al u vra. U weet immers self dat daar niemand onder ons is wat weet hoe om bome te kap soos die Sidoniërs nie.” Toe Hiram Salomo se woorde hoor, was hy baie ingenome en het gesê: “Die Here moet vandag geprys word, Hy wat vir Dawid 'n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk.” Hiram stuur toe vir Salomo die volgende boodskap: “Ek het gehoor wat u my laat weet het. Van my kant af sal ek alles doen wat u verlang in verband met die sederhout en sipreshout. My dienaars sal dit vanaf die Libanon afbring na die see, dan sal ek daarvan vlotte maak op die see en dit neem tot by die plek waaroor u my sal inlig. Ek sal dit daar uitmekaar haal, dan kan u dit laat haal. U moet doen wat ek verwag deur voedsel aan my hofhouding te verskaf.” So het Hiram aan Salomo seder- en sipreshout verskaf, soveel as wat hy wou hê, en Salomo het vir Hiram twintigduisend kor koring gegee as voedselvoorraad vir sy hofhouding, asook twintig kor geparste olyfolie. Dit is hoeveel Salomo jaar vir jaar aan Hiram gelewer het. Dit was die Here wat wysheid aan Salomo gegee het, net soos Hy hom beloof het. Daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het 'n verdrag gesluit. Koning Salomo het uit die hele Israel mense vir verpligte diens opgekommandeer. Die dienswerkers was dertigduisend man. Hy het hulle na die Libanon gestuur, tienduisend per maand in skofte. Vir 'n maand was hulle op die Libanon, en vir twee maande tuis. Adoniram was in bevel van die dwangarbeid. Dan het Salomo ook sewentigduisend draers en tagtigduisend klipkappers in die bergland gehad. Dit was afgesien van Salomo se hoofopsigters oor die werk – drieduisend driehonderd van hulle wat in beheer was van die mense wat die werk moes doen. Die koning se opdrag was dat hulle groot klippe, klippe van goeie gehalte, moes uitbreek, sodat hulle die fondament van die tempel met gekapte klip kon lê. Salomo se bouers, Hiram se bouers en die manne van Gebal het die klip reggekap, en die hout en klip voorberei vir die bou van die tempel. In die vierhonderd-en-tagtigste jaar ná die uittog van die Israeliete uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif – dit is die tweede maand – het hy die •tempel vir die Here begin bou. Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was sestig el lank, twintig el breed en dertig el hoog. Die portaal aan die voorkant van die hoofvertrek van die tempel was, soos die tempel, twintig el breed, en dit was tien el lank. Dit was aan die voorkant van die tempel. Hy het vir die tempel omraamde vensteropeninge met luike gemaak, en rondom, teen die buitemuur van die tempel, het hy 'n struktuur opgerig – dit is reg rondom die mure van die tempel, aan die hoofvertrek en aan die heiligste deel. Hy het rondom sykamers daarin aangebring. Die onderste vlak van die sykamers was vyf el breed, die middelste vlak was ses el breed, en die derde vlak was sewe el breed; want hy het die tempelmuur aan die buitekant rondom trapsgewys vernou, sodat daar nie iets in die tempelmure ingevoeg sou word nie. Die tempel self is by die oprigting met onbewerkte klip uit die steengroef gebou. Hamers en bylpikke, enige gereedskap van yster, is glad nie gehoor by die tempel tydens die oprigting nie. Die ingang na die middelste vlak van die struktuur was aan die regterkant van die tempel. Met trappe het 'n mens opgeklim na die middelste vlak, en van die middelste na die derde. Toe hy die tempelmure klaar gebou het, het hy die tempel bedek met balke en panele van sederhout. Hy het die struktuur opgerig langs die hele tempel; elke vlak was vyf el hoog, en dit was aan die tempel vas met sederhoutbalke. Toe het die woord van die Here tot Salomo gekom: “Aangaande hierdie tempel wat jy besig is om te bou – as jy my vaste voorskrifte volg, my bepalings uitvoer en al my gebooie nakom deur daarvolgens te leef, sal Ek my belofte oor jou gestand doen, die belofte wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het. Ek sal tussen die Israeliete vertoef en my volk Israel nie verlaat nie.” Toe Salomo die tempel klaar gebou het, het hy teen die mure van die tempel aan die binnekant 'n raamwerk van sederhoutplanke aangebring, van die vloer van die tempel tot by die dakbalke van die plafon, en dit toe met hout bedek. Die vloer van die tempel het hy met sipreshout bedek. Die twintig el aan die agterkant van die tempel het hy met sederhoutplanke toegebou, van die vloer tot by die dakbalke. Die binnekant daarvan het hy as heiligdom ingerig, as die Allerheiligste. Die tempel self, dit is die hoofvertrek voor die heiligdom, was veertig el lank. Op die sederhout aan die binnekant van die tempel was daar houtsneewerk van •kolokwinte en blomkelke. Alles was van sederhout; geen klip was te sien nie. Die heiligdom binne-in die tempel het hy ingerig om die verbondsark van die Here daar te plaas. Aan die voorkant was die heiligdom twintig el breed. Dit was twintig el lank en twintig el hoog. Hy het die binnekant met bladgoud oorgetrek. Hy het ook 'n sederhoutaltaar oorgetrek. Salomo het die binnekant van die tempel met bladgoud oorgetrek. Hy het goue kettings voor die heiligdom gespan en die heiligdom met goud oorgetrek. Die hele tempel het hy met goud oorgetrek – die tempel as geheel. Ook die hele altaar wat by die heiligdom hoort, het hy met goud oorgetrek. In die heiligdom het hy twee gerubs van wilde-olyfhout gemaak, tien el hoog. Die een vlerk van die gerub was vyf el lank, en so ook die ander vlerk van die gerub. Daar was tien el tussen die twee vlerkpunte, en ook tien el by die tweede gerub. Die twee gerubs het dieselfde mate en dieselfde vorm gehad: Die hoogte van die een gerub was tien el, en so ook die tweede gerub. Hy het die gerubs in die binnevertrek geplaas, met die vlerke van die gerubs oopgesprei, sodat die vlerk van die een aan die een muur geraak het en die vlerk van die ander gerub aan die ander muur. Hulle vlerke het in die middel van die vertrek aan mekaar geraak. Hy het die gerubs met goud oorgetrek. Aan die mure van die tempel het hy reg rondom versierings van gerubs en palmette en blomkelke in houtsneewerk aangebring, aan die binne- en buitekant. Die vloer van die tempel het hy met goud oorgetrek, in die binne- en buitevertrekke. Vir die ingang na die heiligdom het hy deure van wilde-olyfhout gemaak. Die kosyn – dit is die deurstyle – was vyfvlakkig. En die twee deure van wilde-olyfhout – daarop het hy houtsneewerk van gerubs, palmette en blomkelke aangebring – het hy met goud bedek. Hy het die goud oor die gerubs en palmette geplet. Net so het hy vir die ingang na die hoofvertrek deurstyle van wilde-olyfhout gemaak – dit was viervlakkig – en ook twee deure van sipreshout. Twee vleuels van die een deur kon oopswaai, en twee vleuels van die ander deur ook. Hy het gerubs, palmette en blomkelke daarop uitgekerf en dit oorgetrek met goud wat oor die kerfwerk gevorm is. Toe het hy die binneste voorhof gebou – drie lae gekapte klip en 'n laag sederhoutbalke. In die vierde jaar is die fondament van die tempel van die Here gelê, in die maand Sif, en in die elfde jaar, in die maand Bul, dit is die agtste maand, is die tempel voltooi, al die dele en volgens al die vereistes. Salomo het sewe jaar daaraan gebou. Aan sy paleis het Salomo dertien jaar lank gebou, en toe was sy hele paleis voltooi. Hy het die saal, Bos van die Libanon, gebou, met vier rye pilare van sederhout, en balke van sederhout op die pilare; dit was honderd el lank, vyftig el breed en dertig el hoog. Dit was bo bedek met sederhout, oor die balke wat op die pilare gerus het. Daar was vyf-en-veertig balke, vyftien in 'n ry. Daar was drie rye vensteropeninge, telkens regoor mekaar, in groepe van drie. Al die ingange en openinge het vierkantige rame gehad. Teenoor elke opening was daar 'n opening, in groepe van drie. Die suilesaal het hy vyftig el lank en dertig el breed gemaak. Daar was 'n portaal aan die voorkant, en pilare met 'n afskorting voor. Hy het die troonsaal gemaak, die regsaal, waar hy regspraak moes lewer. Dit was bedek met sederhout van die vloer tot by die dakbalke. Sy paleis waarin hy sou woon, wat deur 'n ander voorhof vanuit die troonsaal bereik kon word, is op dieselfde wyse gebou. Vir die farao se dogter wat Salomo as vrou geneem het, sou hy 'n woning oprig op dieselfde wyse as hierdie saal. Al hierdie bouwerk is gedoen met klippe van goeie gehalte, volgens die afmetings van gekapte klip, afgewerk met 'n klipsaag aan die binne- en buitekant – van die fondament af tot by die dakrant en buite tot by die groot voorhof. Die fondament is gelê met groot klippe van goeie gehalte, klippe van tien el en klippe van agt el. Van daar af boontoe was dit klippe van goeie gehalte, volgens maat gekap, en sederhout. Rondom 'n groot voorhof was daar drie lae gekapte klip en 'n laag sederhoutbalke, net soos by die binneste voorhof van die huis van die Here en die portaal van die •tempel. Daarna het koning Salomo vir Hiram van Tirus af ontbied. Hy was die seun van 'n weduwee uit die stam van Naftali, maar sy vader was 'n man uit Tirus, 'n bewerker van brons. Hy het beskik oor die vaardigheid, insig en kennis om alle soorte bronswerk te doen. Hy het by koning Salomo aangekom en al die werk uitgevoer wat aan hom opgedra is. Hiram het die twee bronspilare gegiet. Agttien el was die hoogte van elke pilaar, en 'n maatlyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan. Verder het hy twee kapitele van gegote brons gemaak om op die koppe van die pilare te plaas. Die hoogte van die een kapiteel was vyf el, en die hoogte van die ander kapiteel was vyf el. Gevlegte traliewerk en kranse, gevorm met kettinkies, was aan die kapitele wat op die koppe van die pilare was – sewe rye aan die een kapiteel en sewe rye aan die ander kapiteel. Hy het die pilare gemaak met twee rye granate om die een strook vlegwerk. Dit was om die kapitele te bedek wat op die kop van die pilare was. Hy het net so gemaak met die tweede kapiteel. Die kapitele wat op die kop van die pilare in die portaal was, was gevorm soos 'n narsing, vier el hoog; dit is nou die kapitele op albei die pilare aan die bokant, net langs die ronding wat oorloop in die vlegwerk. Daar was tweehonderd granate in rye gerangskik, rondom elkeen van die kapitele. Hy het die pilare opgerig by die portaal van die hoofvertrek. Hy het 'n pilaar aan die regterkant opgerig en dit Jagin genoem; hy het ook 'n pilaar aan die linkerkant opgerig en dit Boas genoem. Die bopunt van die pilare het die vorm van 'n narsing gehad. So is die werk aan die pilare afgehandel. Toe het hy die See gemaak, 'n gietstuk, tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. 'n Maatlyn van dertig el kon dit omspan. Daar was •kolokwinte reg rondom aan die onderkant van die rand, tien kolokwinte per el rondom die See gerangskik. Die twee rye kolokwinte is in een stuk gegiet saam met die See. Dit het op twaalf beeste gestaan – drie wat noord kyk, drie wat wes kyk, drie wat suid kyk en drie wat oos kyk. Die See het bo-op hulle gerus, en al hulle agterlywe was na binne gekeer. Die dikte van die wand was 'n handbreedte, en die rand was soos dié van 'n beker, soos die kelk van 'n narsing. Dit kon tweeduisend bat hou. Hy het tien verskuifbare staanders van brons gemaak. Elke staander was vier el lank, vier el breed en drie el hoog. Dit is hoe die staanders gemaak is: Dit het rame gehad, met raamwerk tussen die dwarssporte. Op die raamwerk wat tussen die dwarssporte was, was daar leeus, beeste en gerubs, en so ook op die dwarssporte aan die bokant. Aan die onderkant van die leeus en beeste was daar randversierings uitgeklop. Daar was vier bronswiele aan elke staander, met bronsasse. Die vier hoekstyle het steunpunte gehad. Die steunpunte was onder die waskom vasgegiet; teenoor elkeen was daar randversierings. Die opening in die staander was binne-in die kroonlys, een el diep. Die opening was rond, gevorm as 'n voetstuk van een en 'n half el. Selfs aan die opening was daar graveerwerk. Die rame was egter vierkantig, nie rond nie. Die vier wiele was aan die onderkant van die rame, en die asse van die wiele was aan die staander vas. Die hoogte van elke wiel was een en 'n half el. Die wiele se vorm was dieselfde as dié van 'n strydwa: Die asse, vellings, speke en nawe was alles gegiet. Daar was vier steunstukke aan die vier hoeke van elke staander vas. Dit was 'n deel van die staander. Bo die staander het 'n sirkelvormige rand 'n halwe el hoog uitgestaan. En bo-aan die staander was die handvatsels en rame deel daarvan. Hiram het gerubs, leeus en palmette gegraveer op die plat dele van die handvatsels en die raamwerk, oral waar daar plek was, met randversierings rondom. So het hy dan die tien staanders gemaak, eenders gegiet, met dieselfde mate en dieselfde vorm vir almal. Daarna het Hiram tien bronswaskomme gemaak: elke waskom kon veertig bat hou; elke kom was vier el in deursnee en op elk van die tien staanders was daar een kom. So het hy die verskuifbare staanders geplaas: vyf aan die regterkant van die tempel en vyf aan die linkerkant van die tempel. Die See het hy in die regterflank van die tempel geplaas, in die suidoostelike hoek. Daarna het Hiram die houers, skoppies en offerbakke gemaak. So het Hiram al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo in die huis van die Here moes doen: twee pilare; die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die twee pilare was; die twee stelle vlegwerk waarmee die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, bedek is; die vierhonderd granate vir die twee stelle vlegwerk om die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, te bedek – twee rye granate vir elke stel vlegwerk; die tien verskuifbare staanders; die tien waskomme op die staanders; die een See; die twaalf beeste onder die See; die houers, skoppies en offerbakke. Al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was van gepoleerde brons. In die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, het die koning dit in kleivorms gegiet. Omdat al hierdie voorwerpe so uitermate swaar was, het Salomo dit nie geweeg nie. Die gewig van die brons kon nie vasgestel word nie. Salomo het al die voorwerpe wat in die huis van die Here was, gemaak: die goue altaar; die tafel van goud waarop die vertoonbrode was; die menoras van fyngoud – vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant – voor die heiligdom; die goue blomknoppe, lampe en snuiters; die bakke, messe, offerbakke, skottels en die vuurpanne van fyngoud; die goue beslag vir die deure na die binneste vertrek, die Allerheiligste, en vir die deure na die tempel, die hoofvertrek. Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van die Here geplaas. Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem by hom byeen laat kom om met die •verbondsark van die Here vanuit die Stad van Dawid, dit is Sion, op te trek. Al die manne van Israel het toe by koning Salomo byeengekom in die feestyd, in die maand Etaním, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark van die Here, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die priesters en Leviete het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. Die priesters het die verbondsark van die Here na sy plek geneem, na die heiligdom van die •tempel, na die •Allerheiligste, na sy plek onder die vlerke van die gerubs; want die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligste deel. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die Here met die Israeliete 'n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipteland. Toe die priesters uitkom uit die heiligdom, het 'n wolk die tempel van die Here gevul. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul. Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê dat Hy in diepe duisternis vertoef. Ek het inderdaad 'n vorstelike woning vir U gebou, die plek vir U om in te woon in alle ewigheid. ” Die koning het omgedraai en die hele geloofsgemeenskap van Israel geseën. Terwyl die hele geloofsgemeenskap van Israel daar staan, het hy gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, wat met sy mond met my vader Dawid gepraat het, en met sy hand die volgende woorde vervul het, ‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gelei het, het Ek onder al die stamme van Israel nie 'n stad gekies om 'n tempel te bou, sodat my Naam daar sou wees nie; maar Ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees. ’ My vader Dawid was van voorneme om 'n tempel te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel. Maar die Here het vir my vader Dawid gesê, ‘Jy het jou voorgeneem om vir my Naam 'n tempel te bou. Dit was goed van jou dat jy jou dit voorgeneem het. Jy is egter nie die een wat die tempel sal bou nie, maar jou seun wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal die tempel vir my Naam bou.’ En die Here het sy woord wat Hy gespreek het, gestand gedoen, sodat ek in die plek van my vader Dawid opgestaan het en op die troon van Israel gaan sit het, soos die Here gesê het. Ek het die tempel vir die Naam van die Here, die God van Israel, gebou. Ek het daar 'n plek ingerig vir die ark waarin die verbond van die Here is, wat Hy met ons voorouers gesluit het toe Hy hulle uit Egipteland gelei het.” Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek en gesê: “ Here, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel daar bo of op die aarde hier onder nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by dit wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, Here, God van Israel, hou nou ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal nooit iemand vir jou ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur voor My te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, o God van Israel, laat u belofte wat U aan u dienskneg, my vader Dawid, gemaak het, tog waar word. “ Maar kan God werklik op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, Here my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg vandag voor U bid, dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het, ‘My Naam sal daar wees,’ sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle in die rigting van hierdie plek bid. U self moet dit hoor tot by die plek waar U woon, tot in die hemel. U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het. “ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u Naam – ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. “Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan 'n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ontvoerders, met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’ en hulle dan met hulle hele hart en siel na U terugkeer in die land van hulle vyande wat hulle weggevoer het, en hulle tot U bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. Vergewe dan u volk dit wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredings waarmee hulle teen U oortree het. Gee dat daar vir hulle barmhartigheid sal wees by hulle ontvoerders, sodat dié barmhartig sal optree teenoor hulle. Hulle is immers u volk en u erfdeel wat U uit Egipte, uit die ystersmeltoond, uitgelei het. “ Laat u oë dan oop wees vir die smeekbede van u dienskneg en die smeekbede van u volk Israel, sodat U na hulle sal luister in alles waaroor hulle U aanroep; want dit is U wat hulle vir U afgesonder het as erfenis onder al die volke van die aarde, soos U beloof het by monde van Moses, u dienskneg, toe U ons voorouers uit Egipte uitgelei het, Here, my Heer.” Toe Salomo hierdie hele gebed en smeekbede tot die Here klaar gebid het, het hy dadelik opgestaan voor die altaar van die Here waar hy gekniel en sy handpalms na die hemel uitgestrek het. Hy het gaan staan en die hele geloofsgemeenskap van Israel hardop geseën deur te sê: “Die Here moet geprys word, Hy wat aan sy volk Israel 'n rusplek gegee het, net soos Hy beloof het. Nie een van al sy goeie beloftes wat Hy by monde van sy dienskneg Moses gemaak het, het onvervuld gebly nie. Mag die Here ons God met ons wees, soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nie verlaat nie, ons nie in die steek laat nie, sodat Hy ons harte na Hom sal wend om al sy paaie te volg en sy gebooie, vaste voorskrifte en bepalings na te kom wat Hy ons voorouers beveel het. Mag hierdie woorde van my waarmee ek voor die Here smeek, dag en nag by die Here ons God wees, sodat Hy die reg van sy dienskneg en van sy volk Israel sal handhaaf, volgens die eis van elke dag, sodat al die volke van die aarde mag besef dat die Here, dat Hy, God is, niemand anders nie. En mag julle harte volkome by die Here ons God wees, deur sy vaste voorskrifte te volg en sy gebooie na te kom soos dit vandag is.” Die koning en die hele Israel saam met hom was besig om offers te slag voor die Here. Salomo het die offers geslag wat hy aan die Here opgedra het: twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy. Op daardie dag het die koning die binnekant van die voorhof wat voor die huis van die Here was, geheilig; want daar het hy die •brandoffers en •graanoffers gebring, asook die vet van die •maaltydoffers, omdat die bronsaltaar wat voor die Here was, te klein was vir die brandoffers, graanoffers en die vet van die maaltydoffers. Salomo het in daardie tyd die Huttefees gevier. Die hele Israel was saam met hom, 'n groot byeenkoms uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by die Spruit van Egipte, saam voor die Here ons God, sewe dae lank en toe nog sewe dae lank, veertien dae altesaam. Op die agtste dag daarna het hy die volk laat gaan; en hulle het die koning geseën. Hulle het na hulle woonplekke gegaan, verheug en met opgeruimde harte oor al die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienskneg Dawid, en aan sy volk Israel. Pas nadat Salomo klaar was met die bou van die huis van die Here en die koninklike paleis, met alles wat hy beplan het, met alles wat hy graag wou doen, het die Here 'n tweede keer aan Salomo verskyn, net soos Hy aan hom verskyn het by Gibeon. Die Here het vir hom gesê: “Ek het jou gebed, jou smeekbede wat jy pleitend voor My uitgespreek het, gehoor. Ek het hierdie •tempel wat jy gebou het, geheilig deur my Naam vir altyd daar te vestig. My oë en my hart sal altyd daar wees. En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, met 'n eerlike hart en in opregtheid, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings nakom, sal Ek jou koninklike troon oor Israel vir altyd laat standhou, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek op die troon van Israel nie.’ “As julle wel van My afvallig word, julle of julle nageslag, en nie meer my gebooie, my vaste voorskrifte wat Ek aan julle voorgehou het, nakom nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal Ek Israel uitroei van die grond af wat Ek hulle gegee het, en die tempel wat Ek geheilig het vir my Naam, sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder. Dan sal Israel 'n spreuk en 'n spotnaam word onder al die volke, en hierdie tempel sal 'n puinhoop word. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en fluit en vra, ‘Waarom het die Here so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die Here hulle God, wat hulle voorouers uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom die Here al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ” Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die Here en die koninklike paleis, gebou het, gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur. Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die Here te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van die land, asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens nie, want hulle was krygsmanne, sy dienaars, bevelvoerders, adjudante en die •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters wat in beheer was van Salomo se bouwerk – vyfhonderd-en-vyftig man wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk moes doen. Eers nadat die dogter van die farao uit die •Stad van Dawid opgegaan het na haar paleis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terrasse herbou. Salomo het drie keer per jaar •brandoffers en •maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam het hy wierook gebrand op die altaar wat voor die Here was. Hy het ook die tempel in stand gehou. Koning Salomo het 'n vloot opgebou by Es-jon-Geber wat by Elat is, aan die kus van die Rietsee in die gebied van Edom. Saam met Salomo se dienaars, het Hiram sy dienaars, skeepslui wat die see geken het, aan die vloot beskikbaar gestel. Hulle het na Ofir gegaan en van daar af goud gebring, vierhonderd-en-twintig kikkar en dit na koning Salomo geneem. Die koningin van Skeba het die berigte oor Salomo bly hoor, iets wat die Naam van die Here tot eer gestrek het. Sy het toe gekom om hom met raaisels te toets. Sy het in Jerusalem aangekom met 'n baie groot gevolg – kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud, asook edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir die koning verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. Toe die koningin van Skeba al die wysheid van Salomo sien, ook die paleis wat hy gebou het, die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en die •brandoffers wat hy bring in die huis van die Here, is haar asem weggeslaan. Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar. Maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel nie! In wysheid en welvaart oortref u die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor! Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon van Israel te plaas. Omdat die Here Israel altyd liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ” Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud, groot hoeveelhede speserye en edelstene gegee. Daar het nooit weer so 'n groot hoeveelheid speserye die land binnegekom as wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. Ook die vloot van Hiram, wat goud uit Ofir vervoer het, het groot hoeveelhede sandelhout en edelstene uit Ofir gebring. Van die sandelhout het die koning balustrades gemaak vir die huis van die Here en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So 'n groot hoeveelheid sandelhout het nog nooit tevore daar aangekom en is nog nooit weer, tot vandag toe, daar gesien nie. Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, afgesien van wat hy vir haar gegee het soos gepas vir koning Salomo. Daarna het sy omgedraai en na haar land gegaan, sy en haar dienaars. Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. Dit was afgesien van die goud wat gekom het van die handelsreisigers, van die wins van handelaars, en van al die konings van die Arabiere en die •streekgoewerneurs van die land. Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak, met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel goud het hy elke skild oorgetrek. Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak, met geplette goud daarop. Elkeen van hierdie skilde het hy met drie mina goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, Bos van die Libanon, geplaas. Die koning het 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met bladgoud oorgetrek. Daar was ses trappe vir die troon, en die sitplek het 'n rug met 'n ronde bokant en armleunings aan elke kant gehad. Twee leeus het langs die armleunings gestaan. Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie. Al die drinkgerei van koning Salomo was van goud, en al die toebehore in die saal, Bos van die Libanon, was van fyngoud. Daar was nie silwer nie. Dit is nie in koning Salomo se tyd as waardevol geag nie. Die koning se handelskepe was immers op see saam met Hiram se vloot, en een keer in drie jaar het die handelskepe aangekom, gelaai met goud en silwer, ivoor, bobbejane en ape. So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde. Die hele aarde het Salomo se teenwoordigheid gereeld opgesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. Elkeen het sy geskenk saamgebring: artikels van silwer en goud, kledingstukke, wapens en speserye, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur. Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 'n Strydwa uit Egipte ingevoer, het seshonderd sikkel silwer gekos en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram. Koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad. Saam met die dogter van die farao was daar Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vroue, vroue uit die nasies van wie die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag met hulle nie omgaan nie, en hulle mag met julle nie omgaan nie. Hulle sal beslis julle harte verlei om hulle gode te volg.” Salomo was juis aan hierdie gode verknog. Hy het sewehonderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue gehad. Sy vroue het sy hart verlei. Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die Here sy God, soos wat die hart van sy vader Dawid was nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die verfoeilike god van die Ammoniete, gevolg. Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie die Here met volharding gevolg soos sy vader Dawid nie. Salomo het toe 'n •offerhoogte vir die verfoeilike god van Moab gebou op die berg wat oos van Jerusalem lê, en ook vir •Moleg, die verfoeilike god van die Ammoniete. So het hy gemaak vir al sy uitlandse vroue, wat gewoonlik reukwerk gebrand en offers geslag het vir hulle gode. Die Here was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, en hom juis oor hierdie saak beveel het om nie ander gode te volg nie. Hy het egter nie nagekom wat die Here beveel het nie. Toe sê die Here vir Salomo: “Omdat jy hiervan bewus was, en jy nie my verbond en my vaste voorskrifte wat Ek jou beveel het, nagekom het nie, sal Ek beslis die koningskap van jou afskeur en dit vir jou dienaar gee. In jou leeftyd sal Ek dit egter nie doen nie, ter wille van jou vader Dawid. Uit jou seun se hand sal ek dit wegskeur. Die hele koninkryk sal Ek egter nie wegskeur nie. Een stam sal Ek vir jou seun gee, ter wille van Dawid, my dienskneg, en ter wille van Jerusalem, wat Ek gekies het. ” Daarna het die Here vir Hadad, die Edomiet, as teenstander van Salomo laat opstaan. Hy was uit die koninklike geslag in Edom. Toe Dawid Edom verslaan het, het Joab, die bevelvoerder van die leër, terwyl hy opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe, elke manlike persoon in Edom neergevel. Ja, ses maande lank het Joab en die hele Israel daar gebly, totdat hy elke manlike persoon in Edom afgemaai het. Hadad het egter gevlug, hy en Edomitiese manne, van sy vader se amptenare wat saam met hom was. Hulle wou na Egipte gaan. Hadad was nog 'n jong seun. Hulle het uit Midian vertrek en Paran bereik. Hulle het toe manne uit Paran met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by die farao, die koning van Egipte. Dié het vir hom 'n huis gegee, kosvoorraad aan hom toegesê en ook 'n stuk land vir hom gegee. Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy vir hom sy vrou se suster, die suster van Tagpenes, die koningin, as vrou gegee het. Die suster van Tagpenes het vir hom sy seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom in die farao se paleis gespeen. Genubat was tussen die farao se seuns in die paleis van die farao. Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid by sy voorouers gaan rus het, en dat Joab, die bevelvoerder van die leër, gesterf het, sê Hadad vir die farao: “Laat my gaan, sodat ek na my land kan terugkeer.” Die farao sê toe vir hom: “Maar wat ontbreek jou dan hier by my dat jy nou skielik na jou land wil terugkeer?” Hy antwoord toe: “Niks nie, maar laat my tog maar gaan.” God het vir Salomo nog 'n teenstander laat opstaan – Reson, seun van Eljada, wat gevlug het van sy heer, Hadad-Eser, die koning van Soba. Hy het manne om hom vergader en die •aanvoerder van 'n rowerbende geword juis toe Dawid besig was om 'n slagting onder sy mense aan te rig. Hulle het toe na Damaskus gegaan, daar gaan woon en in Damaskus die bewind oorgeneem. Hy was 'n teenstander van Israel solank Salomo geleef het, bo en behalwe die kwaad wat Hadad aangerig het. Hy het 'n afsku in Israel gehad en oor Aram regeer. Daar was ook Jerobeam, seun van Nebat, 'n dienaar van Salomo, 'n Efraimiet uit Sereda. Die naam van sy moeder, 'n weduwee, was Serua. Maar hy het teen die koning in opstand gekom. En dit is die rede waarom hy teen die koning in opstand gekom het: Salomo het die terrasse herbou en die bres in die muur van die stad van sy vader Dawid toegebou. Die man Jerobeam was 'n bekwame man. Salomo het gesien dat die jong man iemand is wat 'n taak afhandel. Hy het hom toe aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Josef. Gedurende daardie tyd, toe Jerobeam op 'n keer uit Jerusalem uitgaan, kry Agija, die profeet uit Silo, hom langs die pad. Agija het 'n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld. Agija gryp toe die nuwe mantel wat om hom was, en skeur dit in twaalf stukke. Hy sê toe vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want so sê die Here, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan die koningskap uit die hand van Salomo skeur, en tien stamme aan jou gee. Maar die een stam sal syne wees, ter wille van my dienskneg Dawid en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek gekies het uit al die stamme van Israel. Dit is omdat hulle My verlaat het en in aanbidding buig voor Astarte, die godin van die Sidoniërs en voor Kemos, die god van Moab, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Hulle het nie op my paaie gebly deur te doen wat reg is in my oë, en my vaste voorskrifte en bepalings uit te voer soos Salomo se vader Dawid nie. Ek sal nie die hele koninkryk uit sy hand neem nie, maar hom as leier aanstel solank hy leef, ter wille van Dawid, my dienskneg, wat Ek gekies het, hy wat my wette en vaste voorskrifte nagekom het. Maar Ek sal die koninkryk uit die hand van sy seun neem en dit, die tien stamme, aan jou gee. Aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat daar altyd 'n lamp vir Dawid, my dienskneg, voor My sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om my Naam daar te vestig. Maar jou sal Ek neem, en jy sal as koning heers oor alles wat jy begeer – jy sal koning wees oor Israel. As jy dan luister na alles wat Ek jou beveel, my paaie volg en doen wat reg is in my oë deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, soos my dienskneg Dawid gedoen het, sal Ek met jou wees en vir jou 'n bestendige huis bou, soos ek dit vir Dawid gebou het. Ek sal Israel vir jou gee. Ek sal die nageslag van Dawid verneder as gevolg hiervan. Maar dit sal nie vir altyd wees nie.’ ” Salomo het probeer om Jerobeam dood te maak, maar Jerobeam het gereedgemaak en na Egipte gevlug, na Sisak, die koning van Egipte. Hy was in Egipte tot met die dood van Salomo. Die verdere geskiedenis van Salomo, alles wat hy gedoen het en sy wysheid, is dit nie opgeteken in die •boekrol van die Geskiedenis van Salomo nie? Die tydperk wat Salomo in Jerusalem as koning geheers het oor die hele Israel, was veertig jaar. Salomo het by sy voorouers gaan rus en is begrawe in die Stad van Dawid, sy vader. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword. Rehabeam het na Sigem gegaan, want dit was na Sigem waarheen die hele Israel gekom het om hom koning te maak. Toe Jerobeam, seun van Nebat, dit hoor – hy was nog steeds in Egipte, waarheen hy van koning Salomo af weggevlug het – het hy in Egipte gebly. Hulle het hom toe ontbied, en Jerobeam en die hele geloofsgemeenskap van Israel het gekom en met Rehabeam gepraat en gesê: “U vader het ons juk hard gemaak. Maar u, maak nou die harde slawewerk van u vader en die swaar juk wat hy op ons gelê het, ligter, dan sal ons u dien.” Hy het vir hulle gesê: “Gaan drie dae weg en kom dan terug na my.” Die volk het toe weggegaan. Koning Rehabeam vra toe raad by die oudstes wat in sy vader, koning Salomo, se diens gestaan het toe dié nog geleef het: “Wat raai julle my aan moet die antwoord aan hierdie volk wees?” Hulle het vir hom gesê: “As u vandag 'n dienaar van hierdie volk word en hulle dien, en as u hulle antwoord en mooi met hulle praat, sal hulle altyd u dienaars wees.” Hy het egter die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gevra by die jong manne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het. Hy het vir hulle gevra: “Wat raai julle my aan moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het, ‘Verlig die juk wat u vader op ons gelê het’?” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, sê toe vir hom: “So moet jy sê vir hierdie volk wat vir jou gesê het, ‘U vader het ons juk swaar gemaak; maar u, maak dit ligter op ons!’ So moet jy dit aan hulle stel, ‘My pinkie is dikker as my vader se middellyf. Daarom, my vader het 'n swaar juk op julle gelê; maar ek gaan by julle juk nog byvoeg. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.’ ” Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag na Rehabeam toe gekom, soos die koning met hulle afgespreek het deur te sê: “Kom terug na my op die derde dag.” Die koning het die volk hard geantwoord en die raad wat die oudstes hom gegee het, in die wind geslaan. In ooreenstemming met die raad van die jong manne, het hy hulle aangespreek: “My vader het julle juk swaar gemaak, en ek gaan dit nog erger maak. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.” Die koning het nie na die volk geluister nie, want dit was 'n beskikking van die Here, sodat Hy sy belofte wat Hy by monde van Agija, die man uit Silo, aan Jerobeam, seun van Nebat, gemaak het, gestand kon doen. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord: “Watter aanspraak het ons op Dawid? Ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel! Sien nou om na jou eie huis, Dawid!” Israel het toe na hulle tente gegaan. Die Israeliete wat in die dorpe van Juda woon, oor hulle was Rehabeam koning. Koning Rehabeam het Adoniram, wat in bevel van die dwangarbeid was, gestuur, maar die hele Israel het hom met klippe gegooi en hy het gesterf. Koning Rehabeam het daarin geslaag om op sy strydwa te klim om na Jerusalem te vlug. So het Israel in verset gekom teen die huis van Dawid. Dit is vandag nog so. Toe die hele Israel hoor dat Jerobeam teruggekeer het, het hulle hom na die volksvergadering ontbied en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen. Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen die huis van Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam, seun van Salomo, terug te kry. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom: “Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin, asook die res van die volk, ‘So sê die Here: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers, die Israeliete, veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen. ” ’ ” Hulle het die woord van die Here gehoorsaam en teruggegaan volgens die woord van die Here. Jerobeam het Sigem in die heuwelland van Efraim versterk en daarin gaan woon. Toe het hy daarvandaan uitgetrek en Pniël versterk. Jerobeam het in sy hart gesê: Nou gaan die koningskap terugkeer na die huis van Dawid. As hierdie volk optrek om offers te bring in die huis van die Here in Jerusalem, sal die harte van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehabeam, die koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda. Nadat die koning raad gevra het, het hy twee goue kalwers laat maak en vir die mense gesê: “Lank genoeg het julle nou na Jerusalem opgetrek! Hier is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het! ” Hy het die een in Bet-El geplaas; die ander een het hy in Dan geplaas. Hierdie saak het tot sonde gelei; die volk het selfs tot in Dan gegaan om voor die een daar te aanbid. Verder het Jerobeam tempels op die offerhoogtes opgerig en priesters aangestel uit alle dele van die volk. Hulle was nie uit die nageslag van Levi nie. Jerobeam het 'n fees ingestel in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soortgelyk aan die fees wat in Juda gehou is. Hy het self op die altaar geklim. So het hy in Bet-El gemaak – om te offer aan die kalwers wat hy gemaak het. Hy het in Bet-El die priesters van die offerhoogtes wat hy opgerig het, laat diens doen. Hy het op die altaar geklim wat hy in Bet-El opgerig het op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy in sy eie hart versin het. Ja, hy het 'n fees ingestel vir die Israeliete en op die altaar geklim om 'n offer te verbrand. Juis toe kom daar, deur die woord van die Here, 'n man van God uit Juda in Bet-El aan, terwyl Jerobeam op die altaar staan om die offer te verbrand. Hy het, deur die woord van die Here, uitgeroep teen die altaar en gesê: “Altaar, altaar, so sê die Here, ‘Kyk, 'n seun word gebore vir die huis van Dawid; Josia is sy naam. Hy sal op jou die priesters van die offerhoogtes slag, hulle wat offers op jou verbrand, en die beendere van mense sal op jou verbrand word. ’ ” Hy het op dieselfde dag 'n teken aangekondig: “Dit is die teken waarvan die Here gepraat het, ‘Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur, sodat die vetterige as wat daarop is, gestort word.’ ” Toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy uitgeroep het teen die altaar in Bet-El, steek Jerobeam sy hand bo van die altaar af uit en sê: “Gryp hom!” Maar sy hand wat hy na hom uitgesteek het, het verstyf en hy kon dit nie weer na hom terugtrek nie. Die altaar het uitmekaargeskeur en die vetterige as het van die altaar af gestort, ooreenkomstig die teken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die Here. Die koning het daarop gereageer deur vir die man van God te sê: “Soek asseblief die guns van die Here jou God en bid vir my, sodat ek my hand kan terugtrek.” Die man van God het toe die guns van die Here gesoek, en die koning het sy hand teruggetrek, soos dit voorheen was. Die koning praat toe met die man van God: “Kom saam met my huis toe en versterk jouself. Ek wil vir jou 'n geskenk gee.” Maar die man van God sê vir die koning: “Al gee u my die helfte van u paleis, ek sal nie saam met u ingaan nie – ek mag nie brood eet of water drink op hierdie plek nie. Want so is ek deur die woord van die Here beveel, ‘Jy mag nie brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’ ” Hy het toe met 'n ander pad geloop; hy het nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Bet-El gekom het nie. Daar was 'n ou profeet wat in Bet-El gewoon het. Sy seuns kom toe en vertel vir hom alles wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het; wat hy vir die koning gesê het, ook dit het hulle vir hulle vader vertel. Toe vra hulle vader vir hulle: “Met watter pad het hy geloop?” Sy seuns wys toe vir hom die pad waarmee die man van God wat uit Juda gekom het, geloop het. Daarop sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle saal toe vir hom die donkie op. Hy het opgeklim en agter die man van God aan gegaan. Toe hy by hom kom waar hy onder 'n terebintboom sit, vra hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?” Hy het geantwoord: “Ek is.” Hy sê toe vir hom: “Gaan saam met my huis toe en eet iets.” Maar hy antwoord hom: “Ek kan nie saam met jou teruggaan of saam met jou na binne gaan nie. Ek mag nie saam met jou brood eet of water drink op hierdie plek nie, want die boodskap deur die woord van die Here aan my was, ‘Jy mag nie daar brood eet of water drink nie; jy mag nie teruggaan met die pad waarmee jy gegaan het nie.’ ” Maar die ou profeet sê vir hom: “Ook ek is 'n profeet, net soos jy. 'n Engel het met my deur die woord van die Here gepraat en gesê, ‘Bring hom saam met jou terug na jou huis, sodat hy brood kan eet en water kan drink.’ ” Hy het vir hom gelieg. Hy het toe saam met hom teruggegaan en in sy huis brood geëet en water gedrink. Terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die Here tot die ou profeet wat hom laat omdraai het. Hy kondig toe vir die man van God wat uit Juda gekom het, aan: “So sê die Here, ‘Omdat jy in opstand gekom het teen die bevel van die Here en nie die opdrag wat die Here jou God jou gegee het, nagekom het nie, maar omgedraai het en brood geëet en water gedrink het op die plek waarvan Hy vir jou gesê het: “Moenie brood eet of water drink nie,” sal jou lyk nie in die graf van jou voorouers kom nie.’ ” Nadat hy brood geëet het en nadat hy gedrink het, het die ou profeet vir die profeet wat hy laat omdraai het, 'n donkie opgesaal, en hy het vertrek. Maar 'n leeu het op die pad op hom afgekom en hom doodgebyt. Sy lyk het in die pad bly lê, terwyl die donkie daar langsaan staan, en die leeu langs die lyk staan. Juis toe het daar mense verbygegaan; hulle het die lyk in die pad sien lê en die leeu wat langs die lyk staan. Hulle gaan toe en vertel dit in die dorp waar die ou profeet woon. Die profeet wat hom op die pad laat omdraai het, hoor dit toe en sê: “Dit is die man van God wat in opstand gekom het teen die bevel van die Here. Die Here het hom aan 'n leeu oorgegee en dié het hom verskeur en doodgemaak, ooreenkomstig die woord van die Here, soos Hy vir hom gesê het.” Daarop sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle het opgesaal, en hy het gegaan en die lyk gekry wat in die pad lê, met die donkie en die leeu wat langs die lyk staan. Die leeu het nie die lyk geëet nie en nie die donkie verskeur nie. Die ou profeet tel toe die lyk van die man van God op, sit dit op die donkie en neem dit terug. Die ou profeet het sy dorp binnegegaan om te treur en om die lyk te begrawe. Hy het die lyk in sy eie graf neergelê. Hulle het oor hom getreur en gesê: “Helaas, my broer!” Nadat hy hom begrawe het, het hy vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my begrawe in die graf waarin die man van God begrawe is. Langs sy beendere moet julle my liggaam neerlê. Want die boodskap wat hy deur die woord van die Here uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-El is en teen al die tempels op die offerhoogtes wat in die stede van Samaria is, sal beslis bewaarheid word.” Selfs ná hierdie gebeure het Jerobeam nie teruggedraai van sy verkeerde pad af nie. Hy het weer uit alle dele van die volk priesters vir die offerhoogtes aangestel. Wie ook al wou, het hy as priester gewy, en dan het die persoon een van die priesters van die offerhoogtes geword. Hierdie saak het die koningshuis van Jerobeam tot sonde gelei, en dit het gelei tot hulle uitwissing en uitdelging van die aardbodem af. In daardie tyd het Abia, seun van Jerobeam, siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Maak asseblief gereed; vermom jouself, sodat hulle nie weet dat jy die vrou van Jerobeam is nie, en gaan dan na Silo. Kyk, dit is waar die profeet Agija is. Dit is hy wat oor my voorspel het dat ek koning sal word oor hierdie volk. Neem tien brode, gebak en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal aan jou bekend maak wat met die seun gaan gebeur.” Die vrou van Jerobeam het toe so gemaak. Sy het gereedgemaak, na Silo gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie sien nie, want sy oë was al star vanweë sy ouderdom. Die Here het egter vooraf vir Agija gesê: “Kyk, die vrou van Jerobeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek. Dit en dit moet jy vir haar sê. Wanneer sy inkom, sal sy haar as 'n vreemdeling voordoen.” Net toe Agija die geluid van haar voetstappe hoor, terwyl sy by die ingang inkom, sê hy vir haar: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Nou hoekom doen jy jou as 'n vreemdeling voor? Ek word na jou gestuur met 'n harde woord. Gaan sê vir Jerobeam, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Omdat Ek jou verhef het uit die volk se midde en jou as leier oor my volk Israel aangestel het, en Ek die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit vir jou gegee het, maar jy nie was soos my dienskneg Dawid nie, hy wat my gebooie nagekom het en My gevolg het met sy hele hart deur slegs te doen wat reg is in my oë, ja, omdat jy meer kwaad gedoen het as almal wat voor jou was, en jy gegaan en vir jou ander gode gemaak het, gegote beelde, om My uit te tart, en omdat jy My verwerp het, daarom: Kyk, Ek gaan onheil bring oor die huis van Jerobeam. Ek sal van Jerobeam die mansmense in Israel uitroei, sowel hulle wat gevange is as hulle wat vrygelaat is. Ek sal die koningshuis van Jerobeam wegvee soos 'n mens drek wegvee, totdat hy heeltemal vernietig is. As iemand van Jerobeam in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van Jerobeam in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.” ’ Ja, die Here self het dit gesê. En jy, staan op en gaan na jou huis toe! Wanneer jou voete die stad betree, sal die kind sterf. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want van dié wat aan Jerobeam behoort, sal net hy in 'n graf kom, omdat daar, uit die huis van Jerobeam, in hom iets goeds gevind is deur die Here, die God van Israel. Die Here gaan vir Hom 'n koning laat opstaan oor Israel wat die huis van Jerobeam sal uitroei; dit is nou die tyd daarvoor. Maar wat is daar nou nog meer? Die Here gaan Israel tref; hulle sal wees soos 'n riet wat in die water heen en weer swaai. Hy gaan Israel wegruk van hierdie goeie grond af wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle anderkant die Rivier verstrooi, omdat hulle asjeras gemaak het en die Here gedurig uitgetart het. Hy gaan Israel prysgee oor die sondes van Jerobeam, die sondes wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.” Jerobeam se vrou het opgestaan, sy het vertrek en by Tirsa aangekom. Toe sy oor die drumpel van die paleis trap, het die seun gesterf. Die hele Israel het hom begrawe en oor hom gerou, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg, die profeet Agija. Die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en regeer het – kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. Die tydperk wat Jerobeam koning was, was twee-en-twintig jaar. Hy het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword. Rehabeam, seun van Salomo, was koning in Juda. Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die Here gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het Hom nog meer ontstel met die sondes wat hulle gedoen het as alles wat hulle voorouers gedoen het. Ook hulle het vir hulleself offerhoogtes, gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die mense het al die afstootlike dade van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, nagedoen. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe op teen Jerusalem. Hy het die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. Telkens wanneer die koning die huis van die Here binnegegaan het, het die hardlopers dit gedra en dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers. Die verdere geskiedenis van Rehabeam, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid. Sy moeder se naam was Naäma, die Ammoniet. Sy seun Abia het in sy plek koning geword. In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam, seun van Nebat, het Abia koning geword oor Juda. Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Hy het volhard met al die sondes van sy vader wat dié voor hom gedoen het. Sy hart was nie volkome by die Here sy God, soos die hart van sy voorvader Dawid was nie. Maar ter wille van Dawid het die Here sy God vir Dawid 'n lamp gegee in Jerusalem deur sy nasaat ná hom te vestig en Jerusalem staande te hou. Want Dawid het gedoen wat reg is in die oë van die Here en hy het sy lewe lank nie afgewyk van alles wat die Here hom beveel het nie, behalwe in die geval van Uria, die Hetiet. Daar was oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam solank hy geleef het. Die verdere geskiedenis van Abia, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword. In die twintigste regeringsjaar van Jerobeam, koning van Israel, het Asa koning van Juda geword. Hy het een-en-veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. Hy het die manlike tempelprostitute uit die land laat verwyder en weggedoen met al die afgodsbeelde wat sy voorsate gemaak het. Selfs vir Maäga, sy grootmoeder, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap en dit in die Kidrondal verbrand. Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die Here solank hy geleef het. Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van die Here ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. Baesa, koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. Asa neem toe al die silwer en goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis, en vertrou dit aan sy dienaars toe. Koning Asa stuur dit toe na Ben-Hadad, seun van Tabrimmon, seun van Ges-jon, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: “Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u 'n geskenk – silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag teen die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Bet-Maäga aangeval, en ook die hele Gennesaret en die hele gebied van Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en in Tirsa gebly. Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda opgeroep – niemand is verskoon nie – en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het koning Asa toe Geba, in Benjamin, en Mispa versterk. Die volle verdere geskiedenis van Asa, al sy magtige dade, alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Op sy oudag het hy egter aan 'n voetkwaal gely. Asa het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Josafat het in sy plek koning geword. Nadab, seun van Jerobeam, het koning geword oor Israel in die tweede regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Hy het vir twee jaar as koning geheers oor Israel. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy vader gevolg en het volhard met sy vader se sonde waarmee hy Israel laat sondig het. Baesa, seun van Agija, van die huis van Issaskar, het 'n komplot teen hom gesmee. Baesa het hom neergevel by Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort. Nadab en die hele Israel was besig om Gibbeton te beleër. Baesa het hom doodgemaak in die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, en in sy plek koning geword. Pas nadat hy koning geword het, het hy die hele huis van Jerobeam laat ombring. Hy het vir Jerobeam niemand wat asemhaal, laat oorbly nie, totdat hy Jerobeam uitgeroei het. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het by monde van Agija, die man van Silo, sy dienskneg, oor die sondes van Jerobeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy uittartende houding waarmee hy die Here, die God van Israel getart het. Die verdere geskiedenis van Nadab, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. In die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Baesa, seun van Agija, koning geword oor die hele Israel in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam gevolg en het volhard met Jerobeam se sonde waarmee hy Israel laat sondig het. Die woord van die Here teen Baesa het toe tot Jehu, seun van Ganani, gekom: “Omdat Ek jou uit die stof opgehef en jou aangestel het as leier oor my volk Israel, maar jy toe die pad van Jerobeam gevolg en my volk Israel laat sondig het deurdat hulle My getart het met hulle sondes, gaan Ek Baesa en sy koningshuis binnekort wegvee. Ek sal jou huis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat. As iemand van Baesa in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van hom in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.” Die verdere geskiedenis van Baesa, wat hy gedoen het en sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Baesa het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het in sy plek koning geword. Daarby was die woord van die Here by monde van die profeet Jehu, seun van Ganani, teen Baesa en sy huis gerig oor al die kwaad wat hy gedoen het in die oë van die Here deur Hom te tart met sy handewerk, sodat hy soos die huis van Jerobeam geword het, en ook omdat hy die familie van Jerobeam afgemaai het. In die ses-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Ela, seun van Baesa, koning geword oor Israel in Tirsa, en twee jaar lank regeer. Sy dienaar Simri, •aanvoerder van die helfte van die strydwamag, het egter 'n komplot teen hom gesmee. Terwyl Ela in Tirsa, in die huis van Arsa, hoof van die hofhouding in Tirsa, besig was om hom dronk te drink, het Simri binnegegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Hy het in sy plek koning geword. Toe hy koning geword het, pas nadat hy die troon bestyg het, het hy die hele huis van Baesa afgemaai. Hy het vir hom nie 'n enkele mansmens laat oorbly nie, ook nie sy bloedwrekers of sy vertroueling nie. Simri het die hele huis van Baesa uitgeroei, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy tot Baesa gerig het by monde van Jehu, die profeet, en wel oor al die sondes van Baesa en die sondes van Ela, sy seun, wat hulle gedoen het en waarmee hulle Israel laat sondig het deur die Here, die God van Israel te tart met hulle nietige afgode. Die verdere geskiedenis van Ela, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Simri koning geword in Tirsa, en sewe dae lank regeer. Die manskappe was besig om Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort, te beleër. Toe die manskappe wat laer getrek het, die berig kry, “Simri het 'n komplot gesmee en hy het selfs die koning neergevel”, het die hele Israel op daardie dag in die kamp vir Omri, die aanvoerder van die leër, koning gemaak oor Israel. Daarna het Omri, en die hele Israel saam met hom, van Gibbeton af opgetrek en Tirsa beleër. Toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy dadelik na die vesting van die koninklike paleis gegaan en die paleis bo hom aan die brand gesteek en gesterf. Dit was oor sy sondes wat hy gepleeg het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here toe hy die pad van Jerobeam gevolg en volhard het met sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig. Die verdere geskiedenis van Simri en die komplot wat hy gesmee het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Die manskappe van Israel is toe in twee verdeel. Die een helfte van die manskappe het Tibni, seun van Ginat, ondersteun om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri ondersteun. Maar die manskappe wat Omri ondersteun het, het die oorhand gekry oor die manskappe wat Tibni, seun van Ginat, ondersteun het. Tibni het gesterf en Omri het koning geword. In die een-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Omri koning geword oor Israel, en twaalf jaar lank regeer. In Tirsa was hy ses jaar lank koning. Toe het hy die berg Samaria gekoop vir twee kikkar silwer by Semer. Hy het op die berg gebou, en die stad wat hy gebou het, Samaria genoem, na die naam van Semer, die eienaar van die berg. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het meer kwaad aangerig as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam, seun van Nebat, in alle opsigte gevolg en volhard met sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, deur die Here, die God van Israel, te tart met hulle nietige afgode. Die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Omri het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Agab het in sy plek koning geword. Agab, seun van Omri, het koning geword oor Israel in die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Agab, seun van Omri, het twee-en-twintig jaar lank as koning geheers oor Israel in Samaria. Agab, seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer nog as al sy voorgangers. En asof dit maar sommer 'n kleinigheid was om met die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, te volhard, neem hy toe as vrou Isebel, dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs. Hy het Baäl gaan dien en in aanbidding voor hom gebuig. Hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die tempel van Baäl wat hy in Samaria gebou het. Agab het ook 'n asjera gemaak. So het Agab meer gedoen om die Here, die God van Israel, uit te tart as al die konings van Israel wat voor hom daar was. In sy regeringstyd het Giël, 'n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het. Elia, 'n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: “So waar as die Here, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.” Die woord van die Here kom toe daarna tot hom: “Gaan weg hiervandaan; draai oos en gaan kruip weg by die spruit Krit, wat oos van die Jordaan is. Uit die spruit kan jy drink, en vir die kraaie sal Ek opdrag gee om jou daar van kos te voorsien.” Hy het gegaan en gemaak soos die Here gesê het. Hy het by die spruit Krit gaan bly wat oos van die Jordaan is. Die kraaie het telkens vir hom brood en vleis in die oggend gebring, en brood en vleis teen die aand; en uit die spruit kon hy drink. Maar ná verloop van baie dae het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie. Die woord van die Here kom toe tot hom: “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” Maar sy antwoord: “So waar as die Here u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. Want so sê die Here, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde gee.’ ” Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Elia gespreek het. Ná hierdie gebeure het die vrou, die eienares van die huis, se seun siek geword. Sy siekte het so erg geword dat daar nie meer asem in hom oor was nie. Sy sê toe vir Elia: “Wat het jy teen my, man van God? Het jy na my gekom om my sondeskuld bloot te lê en my seun te laat sterf?” Hy het haar geantwoord: “Gee jou seun vir my.” Toe neem hy die seun uit haar arms en dra hom op na die bovertrek waar hy tuisgegaan het. Hy het hom op sy bed neergelê, tot die Here geroep en gesê: “ Here my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as •vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” Toe het hy hom drie keer bo-oor die kind uitgestrek en tot die Here geroep en gesê: “ Here my God, laat die lewe van hierdie kind asseblief na hom terugkeer.” Die Here het geluister na Elia se smeekbede, en die lewe van die kind het na hom teruggekeer, en hy het geleef. Elia het die kind geneem, hom uit die bovertrek na die huis afgeneem en hom vir sy moeder gegee. Elia het gesê: “Kyk, jou seun leef!” Daarop sê die vrou vir Elia: “Nou is ek daarvan oortuig dat u 'n man van God is en dat die woord van die Here uit u mond betroubaar is.” 'n Geruime tyd later, in die derde jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom: “Gaan verskyn aan Agab, sodat Ek reën kan gee op die aarde.” Elia gaan toe om aan Agab te verskyn. Die hongersnood was erg in Samaria, en Agab het Obadja, die hoof van die hofhouding, ontbied. Obadja het groot ontsag vir die Here gehad. Toe Isebel die profete van die Here uitgeroei het, het Obadja 'n honderd profete geneem en hulle weggesteek – vyftig man in 'n grot – en hulle van brood en water voorsien. Agab sê toe vir Obadja: “Gaan deur die land na al die waterfonteine en al die spruite. Dalk kry ons êrens gras, sodat ons die perde en muile aan die lewe kan hou, en nie van die diere van kant hoef te maak nie.” Hulle verdeel toe die land tussen hulle om dit deur te gaan: Agab het op sy eie in 'n rigting gegaan en Obadja het op sy eie in 'n ander rigting gegaan. Terwyl Obadja op pad was, kom Elia hom onverwags teë. Obadja het hom herken en neergeval met sy gesig teen die grond. Hy sê toe: “Is dit werklik u, my heer Elia?” Hy het hom geantwoord: “Dit is ek! Gaan sê vir jou heer, ‘Elia is hier.’ ” Maar hy sê: “Wat het ek gesondig dat u u dienaar in die hand van Agab oorgee, sodat hy my kan doodmaak? So waar as die Here, u God, leef, daar is nie 'n nasie of koninkryk waarheen my heer nie boodskappers gestuur het om u te soek nie. As hulle gesê het, ‘Hy is nie hier nie’, het hy dié koninkryk of dié nasie laat sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou sê u, ‘Gaan sê vir jou heer: “Elia is hier!” ’ As ek hiervandaan sou weggaan en die Gees van die Here neem u weg – waarheen weet ek nie – en ek kom en vertel vir Agab, en hy vind u nie, sal hy my doodmaak. U dienaar het ontsag vir die Here van sy jeug af. Is daar nie vir my heer vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here uitgemoor het nie? Ek het 'n honderd man van die Here se profete weggesteek, vyftig hier en vyftig man daar, in grotte, en hulle van brood en water voorsien. Nou sê u, ‘Gaan sê vir jou heer: “Elia is hier!” ’ Hy gaan my doodmaak.” Maar Elia het gesê: “So waar as die Here, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, ek sal beslis vandag nog voor hom verskyn.” Obadja het Agab tegemoetgegaan en hom ingelig. Daarop het Agab gegaan om Elia te ontmoet. Toe Agab vir Elia sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, die een wat Israel in die ongeluk stort? ” Maar hy antwoord: “Ek het Israel nie in die ongeluk gestort nie, maar dit is jy en jou familie, deurdat julle die gebooie van die Here verontagsaam het, en deurdat jy agter die Baäls aangeloop het. Daarom, stuur boodskappers uit, bring die hele Israel by my byeen op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjera wat aan die tafel van Isebel eet.” Agab het boodskappers uitgestuur na al die Israeliete, en die profete byeengebring by die berg Karmel. Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom. ” Maar die volk het hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as die profeet van die Here, maar die profete van Baäl is vierhonderd-en-vyftig man. Hulle moet vir ons twee bulle gee. Hulle moet vir hulle 'n bul kies, dit opsny en op die hout neersit, maar kole vuur mag hulle nie gebruik nie. Ek sal die ander bul voorberei en op die hout plaas, maar kole vuur sal ek nie gebruik nie. Dan moet julle die naam van julle god aanroep, en ek sal die Naam van die Here aanroep. Die god wat met vuur antwoord, Hy is God. ” Die hele volk het daarop gereageer en gesê: “Dit is goed so.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die Here wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die Here gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die Here 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “ Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, Here, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die Here neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!” Elia sê toe vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Niemand van hulle moet wegkom nie!” Hulle het hulle gegryp, en Elia het hulle afgeneem na die spruit Kison en hulle daar omgebring. Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën.” Agab het gegaan om te eet en drink, maar Elia het na die kruin van Karmel opgegaan en geboë op die grond gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Hy het vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief boontoe en kyk uit in die rigting van die see.” Hy gaan toe boontoe en kyk uit, maar sê: “Daar is niks nie.” Elia sê toe: “Gaan weer! Doen dit sewe keer!” Die sewende keer sê hy toe: “Daar kom 'n wolkie so klein soos die palm van 'n man se hand uit die see op!” Toe sê Elia: “Gaan! Sê vir Agab, ‘Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.’ ” In 'n oogwink het die hemelruim donker geword van wolke en wind, en 'n geweldige reënbui het uitgesak. Agab het op sy strydwa geklim en na Jisreël gegaan. Die hand van die Here het van Elia besit geneem. Hy het sy kleed opgebind en voor Agab uit gehardloop tot by Jisreël. Toe Agab vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het, stuur Isebel 'n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.” Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het egter die woestyn in gegaan, 'n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder 'n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos. Skielik was daar 'n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop 'n roosterkoek op gloeiende kole gebak en 'n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar die •engel van die Here het 'n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem. ” Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die Here. Kyk, die Here sal weldra verbygaan.” Daar was 'n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die Here; in die wind was die Here nie. Ná die wind was daar 'n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die Here nie. Ná die vuur was daar 'n sagte gesuis. Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Meteens was daar 'n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.” Elia het daarvandaan weggegaan en Elisa, seun van Safat, aangetref terwyl hy ploeg. Twaalf pare osse was voor hom aan die werk; hy was self by die twaalfde paar. Elia gaan toe na hom en gooi sy mantel oor hom. Hy het die osse net daar gelaat, agter Elia aan gehardloop en gesê: “Ek wil asseblief my vader en moeder met 'n soen gaan groet, dan sal ek u volg.” Maar hy antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” Hy draai toe om agter hom, neem een paar osse, slag hulle en maak die vleis gaar met die osse se trekgoed. Hy gee dit toe vir die mense, en hulle het dit geëet. Toe maak hy gereed en volg Elia. Hy het sy helper geword. Ben-Hadad, die koning van Aram, het sy hele leër byeengebring. Daar was twee-en-dertig konings saam met hom, met perde en strydwaens. Hy het opgetrek, Samaria beleër en teen hulle geveg. Hy stuur toe boodskappers na die stad, na Agab, koning van Israel. Hy het vir hom laat weet: “So sê Ben-Hadad, ‘Jou silwer en jou goud behoort aan my, en jou vroue en die keur van jou seuns behoort aan my.’ ” Die koning van Israel het daarop gereageer en gesê: “Dit is soos u sê, my heer die koning. Aan u behoort ek met alles wat myne is.” Die boodskappers het toe teruggekom en gesê: “So sê Ben-Hadad, ‘Ek het wel vir jou laat weet: “Jou silwer en goud en jou vroue en seuns moet jy vir my gee.” Maar môre teen hierdie tyd sal ek my dienaars na jou stuur, en hulle sal jou paleis en die huise van jou dienaars deursoek. Hulle sal op alles wat jy kosbaar ag, beslag lê en dit wegneem.’ ” Die koning van Israel het toe al die oudstes van die land ontbied. Hy het vir hulle gesê: “Neem tog kennis hiervan, en sien in dat hierdie man moeilikheid soek; want hy het vir my 'n boodskap gestuur in verband met my vroue en my seuns, my silwer en my goud, en ek het hom dit nie geweier nie.” Daarop sê al die oudstes en die hele volk vir hom: “U moet nie gehoor gee nie; u mag nie instem nie.” Hy sê toe vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir my heer die koning, ‘Alles wat u aanvanklik vir u dienaar laat weet het, sal ek doen, maar aan hierdie eis kan ek nie voldoen nie.’ ” Die boodskappers het toe gegaan en die antwoord aan hom oorgedra. Ben-Hadad stuur toe aan hom dié boodskap: “Mag die gode my swaar straf as die stof van Samaria genoeg sal wees vir die bak hande van al die manskappe wat in my spore volg.” Maar die koning van Israel het daarop gereageer en gesê: “Sê vir hom, ‘Wie hom omgord, moet nie spog soos die een wat al losmaak nie.’ ” Toe Ben-Hadad hierdie boodskap hoor waar hy besig was om te drink, hy en die konings in die tydelike skuilings, sê hy vir sy amptenare: “Stel die oorlogstuig op!” Hulle het toe die oorlogstuig opgestel teen die stad. Juis toe kom 'n sekere profeet by Agab, koning van Israel, aan en sê: “So sê die Here, ‘Sien jy hierdie hele groot menigte? Kyk, Ek gaan hulle vandag in jou hand gee, sodat jy kan weet dat Ek die Here is.’ ” Agab vra toe: “Deur wie?” Daarop antwoord hy: “So sê die Here, ‘Deur die bestuurders van die provinsies se jong manne.’ ” Toe vra hy: “Wie moet die stryd aanknoop?” En hy antwoord: “U moet.” Agab monster toe die bevelvoerders van die provinsies se jong manne. Hulle was tweehonderd twee-en-dertig. En agter hulle stel hy die hele leër op, al die Israeliete, seweduisend van hulle. Hulle het teen die middag uitgetrek, terwyl Ben-Hadad besig was om hom dronk te drink in die tydelike skuilings, hy en die konings, die twee-en-dertig konings wat hom moes help. Die bevelvoerders van die provinsies se jong manne het op die voorpunt uitgetrek. Ben-Hadad het skildwagte uitgeplaas en hulle lig hom toe in: “Daar het manne uit Samaria uitgetrek.” Hy sê toe: “As hulle vir vrede uitgetrek het, moet julle hulle lewendig vang, en as hulle vir oorlog uitgetrek het, moet julle hulle lewendig vang.” Toe daardie manne uit die stad uittrek – die bevelvoerders van die provinsies se jong manne, met die leër agter hulle – het elkeen sy teenstander verslaan. Aram het op die vlug geslaan en Israel het hulle agternagesit. Maar Ben-Hadad, koning van Aram, het op 'n perd ontvlug saam met die ruitery. Die koning van Israel het uitgetrek en die perde en strydwaens aangeval. Hy het Aram 'n groot nederlaag toegedien. Daarna kom die profeet by die koning van Israel en sê vir hom: “Gaan, versterk uself! Oorweeg dit en kyk wat u moet doen, want teen die jaarwending sal die koning van Aram weer teen u optrek. ” Die amptenare van die koning van Aram het vir hom gesê: “Hulle gode is berggode, daarom was hulle te sterk vir ons. Maar as ons op die vlakte teen hulle veg, sal ons beslis sterker wees as hulle. Doen dít: Verwyder die konings, elkeen uit sy pos, en stel •streekgoewerneurs in hulle plekke aan. U kan dan self vir u 'n leër saamstel soos die leër wat vir u in die steek gelaat het, ook perde soos daardie perde, en strydwaens soos daardie strydwaens. Laat ons dan teen hulle veg op die vlakte; ons sal beslis sterker wees as hulle.” Hy het na hulle geluister en so gemaak. Teen die jaarwending het Ben-Hadad die Arameërs gemonster en opgetrek na Afek om teen Israel oorlog te voer. Die Israeliete was reeds gemonster en van voedsel voorsien. Hulle het vertrek om teen hulle te staan te kom. Die Israeliete het teenoor hulle kamp opgeslaan, maar was soos twee troppies bokke, terwyl die Arameërs die land vol was. Die man van God het egter na vore getree en vir die koning van Israel gesê: “So sê die Here, ‘Omdat die Arameërs gesê het “Die Here is 'n berggod; hy is nie 'n god van die valleie nie”, gee Ek hierdie hele groot menigte in jou hand, sodat julle kan weet dat Ek die Here is.’ ” Sewe dae lank het hulle so teenoor mekaar in kampe gestaan, en op die sewende dag het die oorlog uitgebreek. Die Israeliete het die Arameërs verslaan – honderdduisend voetsoldate op een dag. Dié wat oor was, het na Afek gevlug, na die stad; maar die stadsmuur het op die sewe-en-twintigduisend wat oor was, ingeval. Ben-Hadad het ook gevlug en in die stad ingegaan, van een binnekamer na die ander. Sy amptenare sê toe vir hom: “Kyk, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel welwillende konings is. Kom ons bind rouklere om ons heupe en toue om ons koppe en gaan uit na die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.” Hulle het toe rouklere om hulle heupe gebind en toue om hulle koppe, en uitgegaan na die koning van Israel. Hulle het gesê: “U dienaar Ben-Hadad sê, ‘Spaar asseblief my lewe!’ ” Die koning het gevra: “Leef hy dan nog? Hy is my broer! ” Die manne het dit as 'n goeie teken gesien en hulle gehaas om dit van sy kant bevestig te kry. Hulle het gesê: “Ja, u broer, Ben-Hadad!” Hy sê toe: “Gaan haal hom!” Ben-Hadad het uitgekom na hom, en Agab het hom op sy strydwa laat klim. Daarop sê Ben-Hadad vir hom: “Die dorpe wat my vader van jou vader afgeneem het, gee ek terug, en jy kan vir jou markte in Damaskus aanlê, soos my vader dit in Samaria gedoen het.” “En ek,” het Agab gesê, “ek sal jou ná 'n ooreenkoms vrylaat.” Hy het toe 'n ooreenkoms met hom gesluit en hom vrygelaat. 'n Sekere man van die profetegroep het deur die woord van die Here vir sy vriend gesê: “Slaan my asseblief!” Maar die man het geweier om hom te slaan. Hy sê toe vir hom: “Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, gaan 'n leeu jou aanval sodra jy van my af weggaan.” Toe hy van hom af weggaan, kry 'n leeu hom en val hom aan. Hy kry toe iemand anders en sê vir hom: “Slaan my asseblief!” Dié man het hom so geslaan dat hy hom verwond het. Daarop het die profeet die koning op die pad gaan voorstaan. Hy het hom vermom met 'n verband oor sy oë. Terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: “U dienaar het opgetrek in die oorlog. Iemand tree toe skielik uit die gevegslinie, bring 'n man na my en sê, ‘Bewaak hierdie man! As hy enigsins vermis word, sal dit jou lewe vir sy lewe wees, of jy sal 'n kikkar silwer moet betaal.’ Maar terwyl u dienaar hier en daar met iets besig was, was hy net nie meer daar nie.” Die koning van Israel sê toe vir hom: “Presies dit is jou vonnis; jy het dit self bepaal.” Hy haal toe vinnig die verband van sy oë af, en die koning van Israel herken hom as een van die profete. Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here, ‘Omdat jy die man op wie my banvloek rus, uit jou hand vrygelaat het, sal dit jou lewe in die plek van sy lewe wees, en jou volk in die plek van sy volk.’ ” Daarna het die koning van Israel na sy paleis gegaan, nors en tierend. So het hy in Samaria aangekom. Hierna het die volgende gebeur: Nabot, 'n man van Jisreël, het 'n wingerd gehad in Jisreël langs die paleis van Agab, koning van Samaria. Agab praat toe met Nabot en sê: “Gee vir my jou wingerd, sodat dit my groentetuin kan word, want dit is reg langs my paleis. Ek sal vir jou in die plek daarvan 'n wingerd gee wat beter is as dié een. Of, as jy dit verkies, sal ek vir jou die prys daarvoor in silwer betaal.” Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit die erfgrond van my voorgeslagte aan u gee! ” Agab is toe huis toe, nors en tierend oor die antwoord wat Nabot, die man van Jisreël, hom gegee het toe hy gesê het: “Ek sal nie die erfgrond van my voorouers vir u gee nie.” Hy het op sy bed gaan lê, sy gesig weggedraai en niks geëet nie. Isebel, sy vrou, het na hom gekom en vir hom gevra: “Nou hoekom is jy so nors en eet jy niks?” Hy sê toe vir haar: “Omdat ek met Nabot, die man van Jisreël, gepraat en vir hom gesê het, ‘Verkoop aan my jou wingerd vir silwer; of as jy wil, sal ek self vir jou 'n wingerd in die plek daarvan gee;’ maar hy het my geantwoord, ‘Ek sal nie vir jou my wingerd gee nie.’ ” Daarop sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is tog nou die een wat heerskappy voer oor Israel! Staan op, eet iets en laat jou hart vrolik wees. Ék sal vir jou die wingerd van Nabot, die man van Jisreël, gee.” Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. In die briewe het sy geskryf: Roep 'n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek! ” Neem hom dan uit die dorp en stenig hom, sodat hy sterf. Die manne van sy dorp, die oudstes en hoëlui wat in sy dorp gewoon het, het toe opgetree ooreenkomstig die boodskap wat Isebel vir hulle gestuur het, net soos geskryf is in die briewe wat sy vir hulle gestuur het. Hulle het 'n vasdag uitgeroep en Nabot voor tussen die mense laat sit. Die twee manne, die booswigte, kom toe en gaan sit teenoor hom. Die booswigte getuig toe voor die mense teen Nabot en sê: “Nabot het God en koning gevloek.” Hulle neem toe vir Nabot uit die dorp uit en gooi hom met klippe; en hy het gesterf. Daarna laat weet hulle vir Isebel: “Nabot is gestenig en hy is dood.” Toe Isebel hoor dat Nabot gestenig is en gesterf het, gaan sê sy dadelik vir Agab: “Staan op! Neem Nabot, die man van Jisreël, se wingerd in besit wat hy geweier het om aan jou te verkoop, want Nabot leef nie meer nie, ja, hy is dood.” Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy dadelik opgestaan om af te gaan na Nabot, die man van Jisreël, se wingerd, om dit in besit te neem. Maar die woord van die Here het tot Elia, die man uit Tisbe, gekom: “Maak gereed, gaan af om Agab, die koning van Israel, wat in Samaria woon, te ontmoet. Kyk, hy is in Nabot se wingerd, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. Sê dan vir hom, ‘So sê die Here: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?” ’ Sê verder vir hom, ‘So sê die Here: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” ’ ” Agab het vir Elia gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Hy het geantwoord: “Ek het jou gekry, want jy het jouself daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het gesê, ‘Kyk, ek gaan onheil oor jou bring. Ek gaan jou wegvee. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, dié wat gevange is en dié wat vrygelaat is. Ek sal jou koningshuis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die koningshuis van Baesa, seun van Agija, oor die uittarting waarmee jy My getart het en oor jy Israel laat sondig het. ’ Ook in verband met Isebel het die Here uitspraak gelewer, ‘Die honde sal Isebel verslind by die verdedigingswal van Jisreël. As iemand van Agab in die stad sterf, sal die honde hom verslind; en as iemand van Agab in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom verslind.’ ” Daar was werklik niemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie, want sy vrou Isebel het hom daartoe aangespoor. Hy het uiters afstootlik opgetree deur agter die afgodsbeelde aan te loop, net soos die Amoriete gedoen het, hulle vir wie die Here voor die Israeliete uit verdryf het. Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het in rouklere geslaap en neerslagtig rondgeloop. Die woord van die Here kom toe tot Elia, die man uit Tisbe: “Het jy gesien dat Agab homself voor My verneder het? Omdat hy hom voor My verneder het, sal Ek nie die onheil in sy tyd bring nie. In die tyd van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. ” Vir drie jaar was dit rustig. Daar was nie oorlog tussen Aram en Israel nie. In die derde jaar het Josafat, die koning van Juda, afgegaan na die koning van Israel. Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Besef julle dat Ramot in Gilead aan ons behoort, maar ons huiwer om dit uit die hand van die koning van Aram te neem?” Hy vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my gaan vir die geveg by Ramot in Gilead?” Josafat het die koning van Israel geantwoord: “Ek is soos jy; my manskappe is soos jou manskappe, my perde is soos jou perde.” Josafat sê toe vir die koning van Israel: “Raadpleeg net eers die woord van die Here. ” Die koning van Israel het toe die profete byeengebring, ongeveer vierhonderd man, en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead optrek vir die geveg, of moet ek daarvan afsien?” Hulle antwoord was: “Trek op! My Heer sal dit in die hand van die koning gee.” Toe vra Josafat: “Is hier nie nog 'n profeet van die Here nie, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg?” Die koning van Israel het Josafat geantwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg. Maar wat my betref, ek het 'n weersin in hom, want hy profeteer niks goeds oor my nie, net onheil. Dit is Miga, seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so sê nie.” Die koning van Israel ontbied toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga, seun van Jimla.” Terwyl die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, elkeen op sy troon gesit het, geklee in koninklike drag, op 'n dorsvloer by die ingang van die stadspoort van Samaria, het al die profete voor hulle vurig geprofeteer. Sedekia, seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: “So sê die Here, ‘Hiermee gaan u die Arameërs gaffel totdat hulle vernietig is.’ ” Al die ander profete was besig om dieselfde te profeteer en het gesê: “As u optrek na Ramot in Gilead, sal u sukses behaal! Die Here sal dit in die hand van die koning gee.” Die boodskapper wat gegaan het om Miga te ontbied, het vir hom gesê: “Kyk, die woorde van die profete is, asof uit een mond, gunstig vir die koning. Laat jou woorde asseblief wees soos een van hulle se woorde. Voorspel iets goeds!” Maar Miga het geantwoord: “So waar as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek oordra.” Toe hy by die koning aankom, sê die koning vir hom: “Miga, moet ons na Ramot in Gilead gaan vir die geveg of moet ons daarvan afsien?” Hy antwoord hom toe: “As u optrek, sal u sukses behaal! Die Here sal dit in die hand van die koning gee.” Daarop sê die koning vir hom: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy in die Naam van die Here met my niks anders as die waarheid sal praat nie?” Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel gesien, uitmekaar gedryf op die berge soos 'n kudde wat nie 'n herder het nie. Die Here het gesê, ‘Hierdie mense het geen gesagvoerder nie. Laat elkeen van hulle in vrede terugkeer na sy huis.’ ” Daarop sê die koning van Israel vir Josafat: “Het ek dit nie vir jou gesê nie? Hy profeteer oor my niks goeds nie, net onheil.” Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die Here! Ek het die Here sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. Toe sê die Here, ‘Wie sal Agab mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ Die een het dit voorgestel en die ander dat. 'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die Here en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die Here vir hom, ‘Hoe?’ Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die Here, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ Daarom, kyk, die Here het 'n leuengees geplaas in die mond van al hierdie profete van u. Die Here self het onheil teen u gelas.” Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Nou waar het die Gees van die Here dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” Maar Miga het gesê: “Kyk, jy gaan dit ervaar op daardie dag wanneer jy van een binnekamer na die ander gaan om weg te kruip.” Toe sê die koning van Israel: “Neem Miga en laat hom teruggaan na Amon, die stadsbestuurder, en Joas, die seun van die koning, en sê, ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis, en gee hom 'n karige rantsoen brood en water totdat ek ongedeerd terugkom. ” ’ ” Maar Miga het gesê: “As u wel ongedeerd terugkom, het die Here nie deur my gespreek nie.” Hy sê toe ook nog: “Mense, luister, almal van julle!” Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan. Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag, twee-en-dertig van hulle, opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is beslis die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep. En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai. Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning is staande gehou op sy strydwa teenoor die Arameërs. Teen die aand het hy gesterf. Die bloed van sy wond het in die strydwa se bak uitgeloop. Net nadat die son ondergegaan het, het 'n harde uitroep deur die kamp weerklink: “Elkeen na sy stad, elkeen na sy grond!” So het die koning gesterf en dood in Samaria aangekom. Hulle het die koning in Samaria begrawe. Toe hulle die strydwa afgespoel het by die dam van Samaria, terwyl die prostitute gewas het, het die honde sy bloed opgelek, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het. Die verdere geskiedenis van Agab, alles wat hy gedoen het, die paleis met ivoorinleg wat hy gebou het en al die stede wat hy versterk het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Agab het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Ahasia het in sy plek koning geword. Josafat, seun van Asa, het in die vierde regeringsjaar van Agab, koning van Israel, koning geword oor Juda. Josafat was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Asuba, dogter van Silgi. Hy het die pad van sy vader Asa in alle opsigte gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie, en gedoen wat reg is in die oë van die Here. Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Josafat het 'n vredesooreenkoms gehad met die koning van Israel. Die verdere geskiedenis van Josafat, sy magtige dade wat hy verrig het en die oorloë wat hy gevoer het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Die res van die manlike tempelprostitute, dié wat oorgebly het uit die tyd van sy vader Asa, het hy van die aarde af verdelg. Daar was nie 'n koning in Edom nie; 'n landvoog het as koning opgetree. Josafat het handelskepe gebou om goud in Ofir te gaan haal, maar dit het nie gebeur nie, want die skepe het by Es-jon-Geber vergaan. Toe het Ahasia, seun van Agab, vir Josafat gesê: “Laat my dienaars saam met jou dienaars op die skepe gaan.” Maar Josafat wou nie. Josafat het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Jehoram het in sy plek koning geword. Ahasia, seun van Agab, het in Samaria koning geword oor Israel in die sewentiende regeringsjaar van Josafat, koning van Juda. Hy het twee jaar lank as koning geheers oor Israel. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad gevolg van sy vader en sy moeder en van Jerobeam, seun van Nebat, wat Israel laat sondig het. Hy het Baäl gedien en voor hom in aanbidding gebuig. Hy het die Here, die God van Israel, getart, net soos sy vader dit gedoen het. Moab het hom ná die dood van Agab teen Israel verset. Ahasia het deur die traliewerk van sy bovertrek in Samaria geval en is beseer. Hy het boodskappers gestuur met die opdrag: “Gaan doen navraag by •Baäl-Sebub, die god van Ekron, of ek van hierdie besering sal herstel.” Die •Engel van die Here het egter vir Elia, die man uit Tisbe, gesê: “Maak gereed, gaan die koning van Samaria se boodskappers tegemoet en sê vir hulle, ‘Is dit omdat daar geen God in Israel is nie dat julle op pad is om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom, so sê die Here: “Daardie bed waarop jy geklim het – jy sal daarvan nie weer afklim nie, want jy gaan beslis sterf.” ’ ” Elia het toe gegaan. Toe die boodskappers na Ahasia terugkom, vra hy vir hulle: “Nou hoekom het julle dan teruggekom?” Hulle antwoord hom: “'n Man het ons tegemoetgekom en vir ons gesê, ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het en sê vir hom: “So sê die Here, ‘Is dit omdat daar geen God in Israel is nie dat u mense stuur om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom, daardie bed waarop jy geklim het – jy sal daarvan nie weer afklim nie, want jy gaan beslis sterf.” ’ ” Die koning vra toe vir hulle: “Wat was kenmerkend van die man wat julle tegemoet gekom het en vir julle hierdie woorde gesê het?” Hulle antwoord hom: “Dit was 'n man met 'n harige mantel en 'n leerskort om sy heupe gebind.” Toe sê die koning: “Dit is Elia, die man uit Tisbe!” Daarop stuur hy 'n •aanvoerder van vyftig met sy vyftig man na Elia. Hy het opgegaan na Elia, wat juis toe op die kruin van die berg gesit het. Hy sê toe vir hom: “Man van God, die koning gebied, ‘Kom af!’ ” Elia het die aanvoerder van vyftig geantwoord en gesê: “As ek 'n man van God is, mag daar vuur uit die hemel afkom en jou en jou vyftig man verteer! ” Daar kom toe vuur uit die hemel af en verteer hom en sy vyftig. Daarop stuur die koning weer 'n ander aanvoerder van vyftig met sy vyftig man na Elia. Hy gaan toe op en sê vir hom: “Man van God, so sê die koning, ‘Kom dadelik af!’ ” Elia het geantwoord en vir hulle gesê: “As ek 'n man van God is, mag daar vuur uit die hemel afkom en jou en jou vyftig man verteer!” Daar kom toe vuur van God uit die hemel af en verteer hom en sy vyftig man. Die koning stuur toe weer iemand, 'n derde aanvoerder van vyftig met sy vyftig man. Die derde aanvoerder van vyftig het opgegaan, daar aangekom en voor Elia op sy knieë neergesak. Hy het hom gesmeek en vir hom gesê: “Man van God, laat my lewe en die lewens van u dienaars, hierdie vyftig man, asseblief kosbaar wees in u oë! Kyk, vuur het uit die hemel afgekom en die eerste twee aanvoerders van vyftig en hulle vyftig man verteer. Daarom, mag my lewe kosbaar wees in u oë!” Toe sê die Engel van die Here vir Elia: “Gaan saam met hom af; moenie vir hom bang wees nie.” Hy staan toe op en gaan saam met hom af na die koning. Elia het vir Ahasia gesê: “So sê die Here, ‘Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub, die god van Ekron te raadpleeg, asof daar geen God in Israel is wie se woord geraadpleeg kan word nie – daarom, hierdie bed waarop jy geklim het – jy sal daarvan nie weer afklim nie, want jy gaan beslis sterf.’ ” Hy het toe gesterf, ooreenkomstig die woord van die Here wat Elia gespreek het. Joram, sy broer, het in sy plek koning geword, want Ahasia het nie 'n seun gehad nie. Dit het gebeur in die tweede regeringsjaar van Jehoram, seun van Josafat, koning van Juda. Die verdere geskiedenis van Ahasia en wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El. ” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El. Die profetegroep wat in Bet-El was, het na Elisa uitgegaan en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!” Elia sê toe vir hom: “Elisa, bly asseblief hier, want die Here stuur my na Jerigo. ” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Toe hulle in Jerigo aankom, het die profetegroep wat in Jerigo was, na Elisa gekom en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!” Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan. Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op 'n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.” Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik 'n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur. Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan. Toe die profetegroep wat aan die oorkant in Jerigo was, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus op Elisa.” Hulle het hom tegemoetgegaan en diep voor hom na die grond toe gebuig. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, by u dienaars is daar vyftig onverskrokke manne; laat hulle asseblief gaan en u heer soek. Dalk het die wind van die Here hom opgetel en op een van die berge of in een van die valleie neergewerp.” Maar hy het gesê: “Moet hulle nie stuur nie.” Hulle het egter by hom aangedring totdat hy verleë geraak het, en sê: “Stuur dan maar!” Daarop het hulle vyftig man gestuur wat drie dae lank gesoek het, maar hulle kon hom nie kry nie. Hulle het teruggekeer na Elisa terwyl hy nog in Jerigo gebly het, en hy het vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie gaan nie?’ ” Die manne van die dorp het vir Elisa gesê: “Kyk, die ligging van die dorp is goed, soos my heer kan sien; maar die water is sleg en die grond veroorsaak misgeboortes.” Toe sê hy: “Bring vir my 'n nuwe skotteltjie en gooi sout daarin.” Hulle het dit vir hom gebring, en hy het uitgegaan na die bron van die water, die sout daarin gegooi en gesê: “So sê die Here, ‘Ek het hierdie water gesond gemaak; dit sal nie meer dood of misgeboortes veroorsaak nie.’ ” Die water is tot vandag toe gesond, ooreenkomstig die woord van Elisa wat hy gespreek het. Hy het daarvandaan opgegaan na Bet-El. Terwyl hy padlangs opgaan, het 'n groep klein seuntjies uit die dorp gekom. Hulle het met hom die spot gedryf en vir hom gesê: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” Hy het omgedraai en toe hy hulle sien, het hy hulle vervloek in die naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee-en-veertig van die kinders verskeur. Daarvandaan het hy na die berg Karmel gegaan, en van daar af het hy teruggekeer na Samaria. Joram, seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaria in die agttiende regeringsjaar van Josafat, koning van Juda. Hy het twaalf jaar lank regeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy vader en sy moeder nie. Hy het wel die gedenksteen van Baäl wat sy vader gemaak het, verwyder. Maar aan die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het, het hy vasgeklou. Hy het daarvan nie afgewyk nie. Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapteler. Hy moes honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol aan die koning van Israel lewer. Net ná Agab se dood het die koning van Moab hom verset teen die koning van Israel. Koning Joram het dieselfde dag nog uit Samaria uitgetrek en die hele Israel gemonster. Hy het ook gegaan en vir Josafat, koning van Juda, 'n boodskap gestuur: “Die koning van Moab verset hom teen my. Trek jy saam met my teen Moab op vir die geveg?” Hy het geantwoord: “Ek sal optrek. Ek is soos jy; my volk is soos jou volk; my perde soos jou perde.” “Met watter pad sal ons optrek?” het Joram gevra. “Met die pad deur die woestyn van Edom, ” het Josafat geantwoord. Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het vertrek, maar nadat hulle sewe dae lank met 'n ompad getrek het, was daar nie meer water oor vir die leër of die diere by hulle nie. Die koning van Israel sê toe: “Ag, die Here het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab!” Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg nie?” Een van die koning van Israel se dienaars antwoord toe en sê: “Elisa, seun van Safat, wat water gegooi het op Elia se hande, is hier.” Daarop sê Josafat: “By hom is die woord van die Here! ” Toe gaan die koning van Israel en Josafat en die koning van Edom af na hom toe. Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Ek het met jou niks te doen nie. Gaan na die profete van jou pa en jou ma!” Maar die koning van Israel sê vir hom: “Nee, want die Here het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab.” Daarop antwoord Elisa: “So waar as die Here, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, as dit nie was dat ek Josafat, koning van Juda, in ag neem nie, sou ek nie eers na jou gekyk of jou raakgesien het nie. Bring dan nou vir my iemand wat 'n snaarinstrument bespeel.” Toe die persoon op die snaarinstrument begin speel, het die hand van die Here oor hom gekom, en het hy gesê: “So sê die Here, ‘Maak oral kuile in hierdie droë loop!’ Ja, so sê die Here, ‘Julle sal geen wind of reën sien nie, maar hierdie droë loop sal vol water word, sodat julle, julle vee en julle ander diere sal drink. En dit sal 'n kleinigheid wees in die oë van die Here. Hy gaan Moab ook in julle hand gee. Julle sal elke versterkte stad, elke uitsoekstad, verslaan; julle sal elke goeie boom vel, al die waterfonteine toestop en elke goeie stuk land onbruikbaar maak met klippe.’ ” Die volgende oggend, op die tyd wanneer die •graanoffer gebring word, kom daar toe skielik water uit die rigting van Edom! Die gebied is met water gevul. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings optrek om teen hulle oorlog te voer. Elkeen wat al 'n swaard kon aangord, en ouer, is opgeroep en het by die grens stelling ingeneem. Hulle het vroeg die oggend opgestaan, en toe die son op die water skyn, sien die Moabiete die water van die ander kant af – rooi soos bloed. Hulle sê toe: “Dit is bloed! Die konings het beslis met mekaar geveg en die een het die ander verslaan! Nou, na die buit, Moabiete!” Maar toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, staan die Israeliete op en verslaan die Moabiete. Hulle het voor die Israeliete uit gevlug. Hulle het die land binnegedring en die Moabiete verslaan. Die stede het hulle afgebreek, en op elke goeie stuk land het elkeen 'n klip gegooi, en dit so vol klippe gemaak. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom het hulle gevel, totdat net die klipmuur by Kir-Geres oorgebly het. Toe dié wat met slingervelle gooi, die stad omsingel en aanval, en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te hewig raak, het hy sewehonderd man, gewapen met swaarde, met hom saamgeneem om deur te breek na die koning van Edom, maar hulle kon nie. Hy neem toe sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Toe breek daar 'n verskriklike oordeel los oor Israel, en Israel het van Mesa af weggetrek en teruggekeer na hulle land. 'n Sekere vrou, die vrou van iemand uit die profetegroep, het die hulp van Elisa ingeroep: “U dienaar, my man, is dood; en u weet self dat u dienaar ontsag gehad het vir die Here. Die skuldeiser het nou gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. ” Toe sê Elisa vir haar: “Wat kan ek vir jou doen? Vertel my wat jy in jou huis het.” Sy het geantwoord: “U slavin het niks in die huis nie, net 'n kruikie met olie.” Hy sê toe: “Gaan vra houers by al jou bure in die straat, leë houers. Moet net nie te min vra nie. Gaan daarna in en sluit die deur agter jou en jou seuns. Gooi dan die olie in al hierdie houers. Dié wat vol is, moet jy eenkant neersit.” Sy het toe van hom af weggegaan. Sy het die deur agter haar en haar seuns gesluit. Hulle het vir haar die houers aangegee, en sy het ingegooi. Toe die houers vol was, het sy vir haar seun gesê: “Gee nog 'n houer vir my aan.” Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog 'n houer nie.” Die olie het toe ophou vloei. Sy het gegaan en dit vir die man van God vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oor is.” Op 'n dag het Elisa na Sunem oorgegaan. Daar was 'n invloedryke vrou, en sy het daarop aangedring dat hy by haar eet. Telkens wanneer hy daar verbygegaan het, het hy daarheen afgedraai om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Kyk, ek is daarvan oortuig dat dit 'n heilige man van God is wat gereeld hier by ons verbygaan. Kom ons maak tog 'n klein ommuurde bovertrek en sit vir hom daar 'n bed, tafel, stoel en 'n lamp neer, sodat, wanneer hy by ons kom, hy daarheen kan afdraai.” Op 'n dag het Elisa daar aangekom, na die bovertrek afgedraai en daar gaan lê. Hy sê toe vir Gehasi, sy dienaar: “Roep hierdie Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het voor hom gaan staan. Daarop sê hy vir Gehasi: “Sê asseblief vir haar, ‘Kyk, jy het vir ons al hierdie moeite gedoen. Wat kan daar nou vir jou gedoen word? Kan ons vir jou 'n woord doen by die koning of die bevelvoerder van die leër? ’ ” Maar sy het gesê: “Ek woon onder my eie mense.” Elisa sê toe: “Maar wat kan vir haar gedoen word?” Gehasi het geantwoord: “Wel, sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” Hy sê toe: “Roep haar!” Hy het haar geroep en sy het in die deur gaan staan. “Teen hierdie tyd oor 'n jaar,” het Elisa gesê, “sal jy 'n seuntjie omhels.” Maar sy het gesê: “Nee, my heer, man van God! Moenie vir u slavin 'n leuen vertel nie! ” Die vrou het egter swanger geword en 'n jaar later teen dieselfde tyd 'n seun in die wêreld gebring, soos Elisa haar verseker het. Die kind het opgegroei, en toe hy op 'n dag uitgaan na sy vader toe, na die oesters, sê hy vir sy vader: “My kop! My kop!” Die vader het vir sy werker gesê: “Dra hom na sy ma toe!” Hy het hom opgetel en na sy moeder geneem. Hy het op haar skoot gesit tot die middag, en toe sterf hy. Sy het opgegaan, hom op die man van God se bed neergelê en hom daar toegesluit. Sy het uitgegaan, haar man geroep en gesê: “Stuur asseblief vir my een van die werkers en een van die donkiemerries, sodat ek gou na die man van God kan gaan en kan terugkom.” “Waarom gaan jy vandag na hom toe?” het hy gevra. “Dit is mos nie nuwemaan of Sabbat nie.” Sy het geantwoord: “Wees gerus!” Daarop het sy die donkiemerrie opgesaal en vir haar dienaar gesê: “Vat voor en gaan! Moet my nie in die ry ophou nie, behalwe as ek vir jou sê.” Sy het gegaan en by die man van God, by die berg Karmel, aangekom. Toe die man van God haar aan die oorkant sien, sê hy vir Gehasi, sy dienaar: “Kyk, dit is die Sunemitiese vrou daardie! Hardloop haar tog nou tegemoet en vra haar, ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou kind?’ ” Sy het daarop geantwoord: “Dit gaan goed.” Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete vasgegryp. Gehasi het nader gekom om haar weg te stoot, maar die man van God het gesê: “Los haar, want sy is bitter ontsteld. Die Here het dit vir my verberg en my nie ingelig nie.” Sy sê toe: “Het ek 'n seun van u, my heer, gevra? Het ek nie gesê nie, ‘U mag my nie vals hoop gee nie’? ” Daarop sê hy vir Gehasi: “Omgord jou heupe, neem my wandelstok in jou hand en gaan! As jy iemand raakloop, mag jy hom nie groet nie; en as iemand jou groet, moet hom nie antwoord nie. Plaas dan my wandelstok op die seun se gesig. ” Toe sê die seun se moeder: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hy het toe opgestaan en haar gevolg. Gehasi het voor hulle uit gegaan en die wandelstok op die seun se gesig geplaas. Daar was egter geen geluid, geen reaksie nie. Toe het hy omgedraai om Elisa te ontmoet en hom ingelig: “Die seun het nie wakker geword nie.” Toe Elisa by die huis aankom, daar lê die seun dood, op sy bed neergelê. Hy het ingegaan, die deur agter hulle twee gesluit en tot die Here gebid. Toe klim hy op die bed, gaan lê op die kind en plaas sy mond teen die kind se mond, sy oë teen sy oë en sy palms teen sy palms, en buig so oor hom. Die kind se liggaam het warm geword. Elisa het toe nog 'n keer heen en weer geloop in die vertrek, op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies. Toe die seun sy oë oopmaak, het hy Gehasi geroep en gesê: “Gaan roep die Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het na Elisa gekom. Hy het gesê: “Tel jou seun op!” Sy het na binne gegaan, by sy voete neergeval en diep neergebuig teen die grond. Toe tel sy haar seun op en gaan uit. Elisa het teruggegaan na Gilgal. Daar was hongersnood in die land. Terwyl die profetegroep voor hom sit, het hy vir sy dienaar gesê: “Sit 'n groot pot op en kook 'n gereg vir die profetegroep.” Een van hulle het uitgegaan in die veld om wildemalvablare te pluk. Hy kom toe af op 'n wilde rankplant en pluk bitterappels daarvan af, totdat die vou in sy kleed vol was. Hy kom toe en sny dit op in die pot met die gereg, alhoewel hulle dit nie geken het nie. Hulle het dit vir die manne uitgedeel om te eet, maar toe hulle van die gereg begin eet, roep hulle uit en sê: “Die dood is in die pot, man van God!” Hulle kon dit nie eet nie. Hy sê toe: “Gaan haal meel!” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Deel uit vir die mense sodat hulle kan eet!” Daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie. Daar het 'n man uit Baäl-Salisa gekom wat vir die man van God brood van die oes se eerste opbrengs en twintig garsbrode gebring het, asook vars graan in sy kossak. Elisa sê toe: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet!” Maar sy helper sê: “Hoe kan ek dit vir honderd man gee?” Hy het geantwoord: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet, want so sê die Here, ‘Hulle sal eet en daar sal oorbly.’ ” Hy het dit toe aan hulle voorgesit, en hulle het geëet en nog oorgehou, ooreenkomstig die woord van die Here. Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was 'n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die Here aan Aram 'n oorwinning gegee. Maar die man, 'n dapper kryger, het 'n velsiekte gehad. Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en 'n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om 'n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.” Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man 'n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy 'n rede teen my soek.” Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. Elisa het 'n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan. Maar sy dienaars het nader gegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit 'n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van 'n klein seuntjie, en hy was rein. Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” Maar Elisa het gesê: “So waar as die Here leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier. Toe sê Naäman: “As u nie kan nie, laat daar dan asseblief aan u dienaar twee muilvragte grond gegee word; want u dienaar sal nie meer 'n •brandoffer of 'n •maaltydoffer aan ander gode bring nie, net aan die Here. In die volgende geval moet die Here u dienaar vergewe: Wanneer my heer in die tempel van Rimmon ingaan om daar in aanbidding te buig, leun hy gewoonlik op my arm, en dan moet ek ook in die tempel van Rimmon in aanbidding buig. Wanneer ek dan in die tempel van Rimmon in aanbidding buig, moet die Here asseblief u dienaar daarvoor vergewe.” Elisa het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Naäman was al 'n hele ent van hom af weg, toe dink Gehasi, die dienaar van Elisa, die man van God: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, lig daarvan laat afkom deur nie uit sy hand te neem wat hy gebring het nie. So waar as die Here leef, ek gaan beslis agter hom aan hardloop en iets van hom neem. Gehasi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien iemand hardloop agter hom aan, spring hy van die strydwa af om hom tegemoet te gaan en vra: “Is alles reg?” Hy antwoord toe: “Alles is reg. My heer het my gestuur om te sê, ‘Kyk, daar het nou net twee jong manne van die heuwelland van Efraim af by my aangekom. Hulle is van die profetegroep. Gee asseblief vir hulle 'n kikkar silwer en twee stelle klere. ’ ” Daarop sê Naäman: “Wees so vriendelik en aanvaar twee kikkar! ” Hy het by hom aangedring en twee kikkar silwer in twee sakke toegebind, asook twee stelle klere. Hy het dit vir twee van sy dienaars gegee, en hulle het dit voor Gehasi gedra. Maar toe hy by die stadsheuwel kom, het hy dit uit hulle hande geneem en veilig in die huis gebêre. Hy het die manne weggestuur, en hulle het vertrek; maar hy het na binne gegaan en by sy heer gaan staan. Elisa het vir hom gevra: “Vanwaar, Gehasi?” Hy het geantwoord: “U dienaar het nêrens heen gegaan nie.” Elisa sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees teenwoordig toe 'n man van sy strydwa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Was die tyd dan ryp om silwer te neem, om klere te neem, en daarmee olyfboorde en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne te bekom? Die velsiekte van Naäman sal aan jou en jou nageslag kleef vir altyd.” Toe Gehasi van hom af weggaan, het hy die velsiekte gehad – soos sneeu. Die profetegroep het vir Elisa gesê: “Kyk, die plek waar ons voor u woon, is te klein vir ons. Laat ons asseblief na die Jordaan gaan en daar elkeen 'n balk kry, sodat ons daar vir ons 'n plek kan maak om te bly.” “Gaan!” het hy gesê. Maar die een sê toe: “Wees asseblief so vriendelik en gaan saam met u dienaars.” Hy het gesê: “Goed, ek sal gaan.” Hy het toe saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, het hulle die bome afgekap. Maar terwyl die een besig was om 'n balk af te kap, val die byl se kop in die water. Hy roep toe uit en sê: “Ag, my heer, dit was 'n geleende een!” Daarop vra die man van God: “Waar het dit geval?” Hy wys hom toe die plek. Die man van God het 'n stukkie hout afgesny, dit daarheen gegooi en die byl se kop laat dryf. Hy sê toe: “Haal dit vir jou uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit geneem. Die koning van Aram was besig om oorlog te voer teen Israel. Nadat hy met sy amptenare beraadslaag het, sê hy: “By so-en-so 'n plek sal my kamp wees.” Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Wees versigtig om nie by hierdie plek verby te trek nie, want die Arameërs val daarheen terug. ” Daarom het die koning van Israel 'n boodskap gestuur na die plek wat die man van God vir hom aangewys en waarteen hy hom gewaarsku het. Hulle was daar toe op hulle hoede. Dit het nie net een of twee keer gebeur nie. Die koning van Aram was ontsteld hieroor, en het sy amptenare ontbied en vir hulle gesê: “Kan julle my nie inlig wie van ons vir die koning van Israel is nie?” Een van sy amptenare het geantwoord: “Nie een van ons nie, my heer die koning; maar Elisa, die profeet wat in Israel is, deel die koning van Israel die woorde mee wat u in u slaapkamer praat.” Daarop sê hy: “Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom kan laat vang.” Toe daar aan hom berig gebring is, “Kyk, hy is in Dotan! ” het hy perde en strydwaens en 'n sterk mag daarheen gestuur. Hulle het in die nag gekom en die dorp omsingel. Toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar sowaar 'n leërmag met perde en strydwaens om die dorp! Sy dienaar sê toe vir hom: “Ag, my heer, wat moet ons doen?” Maar hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Elisa het toe gebid en gesê: “ Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die Here die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur! Toe die Arameërs na hom afkom, bid Elisa tot die Here en sê: “Slaan tog hierdie nasie met blindheid!” Die Here het hulle toe met blindheid geslaan, soos Elisa versoek het. Daarna sê Elisa vir hulle: “Dit is nie die pad hierdie nie, en dit is nie die dorp nie. Volg my, sodat ek julle kan lei na die man na wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria gelei, en toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “ Here, maak hierdie mense se oë oop, sodat hulle kan sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak, en hulle sien toe hulle is sowaar binne-in Samaria! Toe hy hulle sien, sê die koning van Israel vir Elisa: “Moet ek aanval? Moet ek aanval, my vader? ” Maar hy antwoord: “Jy mag hulle nie aanval nie. Sou jy dié wat jy met jou swaard en boog gevange geneem het, aanval? Sit vir hulle brood en water voor, sodat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan gaan.” Hy het toe vir hulle 'n groot fees voorgesit. Nadat hulle geëet en gedrink het, het hy hulle weggestuur en hulle het na hulle heer toe gegaan. Die roofbendes van die Arameërs het toe nie meer in die gebied van Israel gekom nie. 'n Tyd daarna het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër byeengebring, opgetrek en Samaria beleër. Daar was 'n groot hongersnood in Samaria; ja, kyk, hulle het die stad beleër totdat 'n donkiekop teen tagtig sikkel silwer, en 'n kwart kab duiwemis teen vyf sikkel silwer verkoop is. Toe die koning van Israel op die stadsmuur verbyloop, het 'n vrou na hom om hulp geroep: “Help, my heer die koning!” Maar hy het gesê: “Moet die Here jou nie help nie? Waarvandaan moet ek jou help? Van die dorsvloer af? Van die parskuip af?” Die koning sê toe ook vir haar: “Wat is jou probleem?” Sy het geantwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê, ‘Gee jou seun, dat ons hom vandag eet. My seun kan ons môre eet’. Ons het toe my seun gekook en hom geëet, maar toe ek die dag daarna vir haar sê, ‘Gee jou seun, dat ons hom kan eet!’ het sy haar seun weggesteek.” Toe die koning die vrou se woorde hoor, het hy sy klere geskeur, terwyl hy op die stadsmuur verbygaan. Die volk sien toe dat hy sowaar onder sy klere 'n roukleed aan het! Hy sê toe: “Mag God my swaar straf as Elisa, seun van Safat, se kop vandag steeds op sy lyf is!” Terwyl Elisa in sy huis sit, en die oudstes daar by hom sit, het die koning 'n man voor hom uit gestuur. Maar voordat die boodskapper nog by hom aankom, het hy vir die oudstes gesê: “Het julle gemerk dat hierdie moordenaar iemand stuur om my kop af te kap? Wees op die uitkyk. Sluit die deur sodra die boodskapper kom. Druk hom terug met die deur! Is die geluid van sy heer se voetstappe nie agter hom nie?” Hy was nog besig om met hulle te praat, kyk, toe kom die boodskapper al daar na hom toe af! Die koning sê toe: “Kyk, hierdie onheil is van die Here. Waarom sou ek dan nog op die Here wag?” Maar Elisa het gesê: “Hoor die woord van die Here! So sê die Here, ‘Môre teen hierdie tyd sal 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop word in die stadspoort van Samaria. ’ ” Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: “Kyk, al sou die Here vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” Toe sê Elisa: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.” Daar was vier mans met 'n velsiekte by die ingang van die stadspoort, en hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons hier bly totdat ons sterf? As ons sê, ‘Ons gaan die stad binne,’ en daar is hongersnood in die stad, dan sterf ons daar, en as ons hier bly, dan sterf ons. Daarom, kom ons loop oor na die Arameërs se kamp. As hulle ons laat lewe, dan leef ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” Hulle het toe teen skemerdonker gereedgemaak om na die Arameërs se kamp te gaan. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kyk, toe is daar niemand nie! Die Heer het die leër van die Arameërs die geluid van strydwaens en perde, die geluid van 'n groot mag, laat hoor, en hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte teen ons gehuur om ons te oorval!” Hulle het toe opgespring en in die skemerdonker gevlug. Hulle het hulle tente, hulle perde en donkies – die kamp soos dit was – agtergelaat, en asof vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie manne met die velsiekte by die kant van die kamp kom, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer en goud en klere daarvandaan weggedra en dit gaan wegsteek. Hulle het teruggekom, in 'n ander tent ingegaan en ook van wat daar was, weggedra en dit gaan wegsteek. Maar toe sê hulle vir mekaar: “Dit is nie reg wat ons doen nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie nuus en ons hou dit stil. As ons wag tot daglig, sal ons skuldig staan. Kom ons gaan dan nou en bring die nuus aan die koninklike paleis.” Hulle gaan toe, roep na die poortwag van die stad en lig hulle in: “Ons het by die Arameërs se kamp gekom, en kyk, daar was niemand nie, nie die geluid van 'n mens nie; slegs vasgemaakte perde en donkies, en tente, net so agtergelaat.” Die poortwagte roep dit toe uit en maak dit in die koninklike paleis bekend. Die koning het in die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Laat ek tog vir julle vertel wat die Arameërs aan ons wil doen. Hulle weet dat ons honger ly. Hulle het uit die kamp gegaan om in die veld weg te kruip, met die gedagte: Wanneer hulle uit die stad gaan, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom.” Een van sy amptenare reageer toe daarop en sê: “Laat hulle tog maar vyf van die oorblywende perde neem, van dié wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat op hulle laaste bene is. Laat ons hulle stuur en sien wat aangaan.” Hulle neem toe twee strydwaens met perde. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aangestuur en gesê: “Gaan kyk!” Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. En kyk, die hele pad was besaai met kledingstukke en toerusting wat die Arameërs in hulle haas neergegooi het. Die boodskappers het omgedraai en aan die koning berig gebring, waarop die volk toe uitgaan en die Arameërs se kamp plunder. 'n Sea gesifte meel is teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop, ooreenkomstig die woord van die Here. Die koning het die adjudant op wie se arm hy geleun het, by die poort laat toesig hou. Maar die mense het hom in die poort vertrap en hy het gesterf, soos die man van God gesê het toe die koning na hom afgegaan en hy met hom gepraat het. Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Twee sea gars sal teen 'n sikkel en 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel te koop wees teen hierdie tyd môre in die stadspoort van Samaria.” Die adjudant het toe mos die man van God geantwoord en gesê: “Kyk, al sou die Here vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” En hy het toe geantwoord: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.” Dit het toe net so met hom gebeur – die mense het hom in die poort vertrap, en hy het gesterf. Elisa het gepraat met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, en gesê: “Maak gereed en gaan, jy en jou huisgesin; gaan bly as •vreemdeling waar jy ook al kan, want die Here het 'n hongersnood aangekondig. Die ergste is, dit het gekom om sewe jaar lank oor die land te heers.” Die vrou het gereedgemaak en gedoen wat die man van God gesê het. Sy en haar huisgesin het gegaan, en sy het sewe jaar lank as vreemdeling in die land van die Filistyne gebly. Aan die einde van die sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het uitgegaan om haar op die koning te beroep oor haar huis en haar grond. Die koning was juis in gesprek met Gehasi, die dienaar van die man van God, en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dade wat Elisa gedoen het.” Hy was besig om vir die koning te vertel hoe Elisa 'n dooie lewend gemaak het, en juis toe kom die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, daar aan met die beroep op die koning oor haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “My heer die koning, dit is die vrou, en dit is haar seun wat Elisa lewend gemaak het!” Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning 'n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.” Elisa het in Damaskus gekom toe Ben-Hadad, koning van Aram, siek was. Hy is ingelig: “Die man van God het hier aangekom.” Die koning sê toe vir Gasael: “Neem 'n geskenk saam en gaan ontmoet die man van God. Raadpleeg dan die Here deur hom en vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Gasael het gegaan om hom te ontmoet; hy het 'n geskenk en van alles wat goed was in Damaskus, saamgeneem – 'n vrag vir veertig kamele. Hy het gekom, voor Elisa gaan staan en gesê: “U seun Ben-Hadad, koning van Aram, het my na u gestuur om te vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Elisa het vir hom gesê: “Gaan sê, ‘Jy sal beslis nie herstel nie. Die Here het aan my geopenbaar dat jy beslis sal sterf.’ ” Elisa se blik het verstar en hy het hom aangestaar totdat Gasael verleë was. Toe huil die man van God. Gasael het gevra: “Waarom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Hulle versterkte stede sal jy aan die brand steek, hulle jong manne gaan jy met die swaard vermoor, hulle kinders sal jy te pletter slaan en hulle swanger vroue sal jy oopsny. ” Gasael het egter gesê: “Maar wat is u dienaar, 'n hond, dat hy iets so erg sal doen?” Toe sê Elisa: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.” Hy het van Elisa af weggegaan en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal leef.” Maar die volgende oggend het Gasael 'n deken geneem en dit in water gedompel. Hy het dit oor die koning se gesig getrek, en hy het gesterf. Gasael het toe in sy plek koning geword. In die vyfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, die koning van Israel, toe Josafat nog koning was van Juda, het Jehoram, die seun van Josafat, sy vader opgevolg as koning van Juda. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het die pad van die konings van Israel gevolg, soos die huis van Agab gedoen het, want Agab se dogter was sy vrou. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Maar ter wille van Dawid, sy dienskneg, wou die Here Juda nie vernietig nie, aangesien Hy vir Dawid beloof het om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee. In die tyd van Jehoram het die Edomiete weggebreek van die gesag van Juda en 'n koning oor hulle aangestel. Jehoram het toe oorgegaan na Saïr met al die strydwaens by hom. Hy het in die nag gereedgemaak en die Edomiete wat hom en die •aanvoerders van die strydwamag omsingel het, verslaan, maar die manskappe het na hulle tente gevlug. Die Edomiete het weggebreek van die gesag van Juda; dit is vandag nog so. In dieselfde tyd het Libna toe ook weggebreek. Die verdere geskiedenis van Jehoram, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Jehoram het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid. Ahasia, sy seun, het in sy plek koning geword. In die twaalfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, die koning van Israel, het Ahasia, seun van Jehoram, die koning van Juda, koning geword. Ahasia was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Atalia, 'n kleindogter van Omri, koning van Israel. Hy het die pad van die huis van Agab gevolg en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die huis van Agab, want hy was aangetroude familie van die huis van Agab. Hy het saam met Joram, seun van Agab, gegaan vir die geveg teen Gasael, koning van Aram, by Ramot in Gilead; maar die Arameërs het Joram verslaan. Toe het koning Joram teruggekeer om in Jisreël van sy wonde te herstel wat die Arameërs hom toegedien het by Rama, toe hy teen Gasael, koning van Aram, geveg het. Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, het toe afgegaan om Joram, seun van Agab, in Jisreël te besoek, omdat hy siek was. Die profeet Elisa het iemand van die profetegroep geroep en vir hom gesê: “Omgord jou heupe, neem hierdie fles olie saam met jou, en gaan na Ramot in Gilead. Wanneer jy daar aankom, kyk daar uit vir Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi. Gaan dan in, laat hy opstaan tussen sy makkers en neem hom na 'n binnekamer. Neem dan die fles olie, giet dit oor sy kop uit en sê, ‘So sê die Here: “Ek salf jou as koning oor Israel.” ’ Maak dan die deur oop en vlug – moenie talm nie!” Die jong man, die profeet, het na Ramot in Gilead gegaan. Toe hy daar aankom, sit die •aanvoerders van die leërmag juis daar bymekaar. Hy sê toe: “Ek het 'n boodskap vir u, bevelvoerder. ” Jehu vra toe: “Vir wie van ons?” “Vir u, bevelvoerder,” het hy geantwoord. Jehu het opgestaan en die huis binnegegaan. Toe giet die profeet die olie oor sy kop uit en sê vir hom: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek salf jou as koning oor die volk van die Here, oor Israel. Jy moet die koningshuis van jou heer Agab tot 'n val bring, sodat Ek die bloed van my diensknegte, die profete kan wreek, ja, die bloed van al die diensknegte van die Here kan eis van die hand van Isebel. Die hele huis van Agab sal ten gronde gaan. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, hulle wat gevange is en hulle wat vrygelaat is. Ek gaan die huis van Agab maak soos die huis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die huis van Baesa, seun van Agija. En Isebel – die honde sal haar verslind op die stuk land van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie. ’ ” Toe maak hy die deur oop en vlug. Jehu het uitgegaan na die amptenare van sy heer. Hulle sê toe vir hom: “Is alles reg? Waarom het hierdie waansinnige na jou toe gekom?” Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.” Maar hulle sê: “Dis 'n leuen! Vertel ons tog!” Toe sê hy: “Dit is wat hy vir my gesê het, ‘So sê die Here: “Ek salf jou as koning oor Israel.” ’ ” Toe neem elkeen gou sy kledingstuk en plaas dit onder Jehu op die kaal trappe. Daarop blaas hulle op die •ramshoring en roep uit: “Jehu is koning!” Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi, het toe teen Joram 'n komplot gesmee. Joram was saam met die hele Israel besig om Ramot in Gilead te verdedig teen Gasael, koning van Aram. Koning Joram het egter teruggekeer om in Jisreël te herstel van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het in sy geveg met Gasael, koning van Aram. Toe sê Jehu: “As dit julle goedkeuring wegdra, laat niemand uit die stad wegkom om dit in Jisreël te gaan bekend maak nie.” Jehu klim toe op sy wa en gaan na Jisreël, want Joram het daar siek gelê, en Ahasia, koning van Juda, het afgegaan om Joram te besoek. Die wag wat op die uitkyktoring in Jisreël gestaan het, het Jehu se troepemag sien aankom. Hy sê toe: “Ek sien troepe!” Daarop sê Joram: “Kry 'n ruiter en stuur hom om hulle tegemoet te gaan en te vra, ‘Is alles reg?’ ” Die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” Die wag doen toe verslag: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie!” Joram stuur toe 'n tweede perderuiter, en toe hy by hulle kom, sê hy: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” Die wag doen toe weer verslag: “Hy het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie. En die manier van ry, is soos dié van Jehu, seun van Nimsi, want hy jaag soos 'n besetene!” Toe sê Joram: “Span in!” Hy het sy strydwa ingespan, en Joram, koning van Israel, het saam met Ahasia, koning van Juda, uitgegaan, elkeen op sy strydwa. Hulle het uitgegaan om Jehu te ontmoet, en hulle het hom aangetref by die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël. Toe Joram vir Jehu sien, sê hy: “Is alles reg, Jehu?” Maar Jehu antwoord: “Hoe kan alles reg wees solank die hoerery van Isebel, jou ma, en haar eindelose heksery voortduur? ” Toe ruk Joram sy wa om en vlug. Hy skree vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!” Maar Jehu span sy boog en tref Joram tussen sy blaaie. Die pyl het sy hart deurboor en hy het op sy strydwa inmekaargesak. Jehu sê toe vir Bidkar, sy adjudant: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël, want onthou, ek en jy het langs mekaar agter sy pa Agab gery toe die Here die volgende profesie oor hom aangekondig het, ‘Gewis het Ek gisteraand die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns raakgesien, is die uitspraak van die Here, en Ek sal dit op hierdie stuk grond aan jou vergeld, is die uitspraak van die Here. ’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond, ooreenkomstig die woord van die Here. ” Toe Ahasia, koning van Juda, dit sien, het hy gevlug met die pad na Bet-Gan. Maar Jehu het hom agtervolg en gesê: “Skiet hom ook!” Hulle het hom geskiet in sy strydwa teen die opdraande van Gur wat by Jibleam is. Hy het na Megiddo gevlug, maar het daar gesterf. Sy dienaars het hom na Jerusalem vervoer en hom in sy graf by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Dit was in die elfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, dat Ahasia koning geword het oor Juda. Jehu het in Jisreël aangekom. Toe Isebel dit hoor, het sy haar oë grimeer, haar hare netjies gemaak en deur die venster afgekyk. Terwyl Jehu by die stadspoort inkom, sê sy: “Is alles reg, Simri, moordenaar van sy heer? ” Jehu het opgekyk na die venster en gesê: “Wie is aan my kant, wie?” Twee of drie van die eunugs het na hom afgekyk. Hy sê toe: “Gooi haar af!” Hulle het haar afgegooi, en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en dié het haar vertrap. Hy het binnetoe gegaan en geëet en gedrink. Toe sê hy: “Gee tog aandag aan hierdie vervloekte vrou en begrawe haar; sy was immers die dogter van 'n koning. ” Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar hulle het van haar niks gekry nie, behalwe die kopbeen, die voete en die hande. Hulle het teruggekeer en dit vir Jehu vertel. Toe sê hy: “Dit is die vervulling van die woord van die Here wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, die man uit Tisbe, gespreek het, ‘Op die stuk grond in Jisreël sal honde die liggaam van Isebel verslind,’ en Isebel se lyk sal op die stuk grond in Jisreël wees soos uitwerpsel in die veld. Hulle sal nie kan sê, ‘Dit was Isebel’ nie.” Agab het sewentig seuns in Samaria gehad. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria, na die •hoë amptenare van Jisreël, die oudstes, en na die voogde van Agab se seuns, met hierdie woorde: “Nou, sodra hierdie brief by julle uitkom – die seuns van julle heer is mos by julle, en by julle is ook die strydwamag en perde, 'n versterkte stad en die toerusting – moet julle die beste en geskikste van julle heer se seuns uitsoek en hom op sy vader se troon sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.” Hulle het ontsettend bang geword en gesê: “Kyk, twee konings het nie voor hom stand gehou nie. Hoe kan ons dan standhou?” Die hoof van die hofhouding, die stadsbestuurder, die oudstes en die voogde het vir Jehu laat weet: “Ons is u dienaars. Alles wat u vir ons sê, sal ons doen. Ons sal niemand koning maak nie. Wat u goedvind – doen dit!” Hy skryf aan hulle toe 'n tweede brief met die woorde: “As julle aan my kant is en aan my gehoorsaam is, neem dan die koppe van die manne, van die seuns van julle heer, en bring dit môre teen hierdie tyd na my in Jisreël. ” Die seuns van die koning, sewentig man, was by vername mense van die stad, wat hulle grootgemaak het. Toe die brief by hulle kom, het hulle dadelik die koning se seuns geneem en die sewentig man onthoof. Hulle het die koppe in dramandjies gesit en na Jehu in Jisreël gestuur. Toe die boodskapper binnegaan en hom meedeel: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” het hy gesê: “Sit hulle neer in twee hope by die ingang na die stadspoort tot môreoggend.” Die volgende oggend het hy uitgegaan, daar gaan staan en vir die hele volk gesê: “Julle is onskuldig. Kyk, ek is die een wat teen my heer 'n komplot gesmee en hom om die lewe gebring het. Maar wie het al hierdie mense neergevel? Weet dan dat daar niks onvervuld sal bly van die Here se woord wat die Here oor die huis van Agab gespreek het nie. Die Here self het gedoen wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, gespreek het.” Jehu het almal wat van die huis van Agab in Jisreël oorgebly het, neergevel – al sy vername mense, sy vertrouelinge en sy priesters – totdat hy niemand van Agab laat vrykom het nie. Toe het Jehu opgestaan, die stad binnegegaan en na Samaria vertrek. Terwyl hy op pad was by Bet-Eked-Roïm, het Jehu die broers van Ahasia, die koning van Juda, teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet,” het hulle geantwoord. “Gryp hulle lewendig!” het Jehu gesê. Hulle het hulle toe lewendig gegryp en onthoof by die opgaarput van Bet-Eked – twee-en-veertig man. Hy het niemand van hulle laat vrykom nie. Toe hy daarvandaan weggaan, kom hy af op Jonadab, seun van Regab, wat na hom toe op pad was. Hy groet hom toe en sê vir hom: “Is jy dit heelhartig met my eens, soos ek dit met jou is?” Jonadab het geantwoord: “Ek is.” Daarop sê Jehu: “Indien wel, gee jou hand!” Toe hy sy hand gee, help Jehu hom op die strydwa by hom en sê: “Gaan saam met my en aanskou my ywer vir die Here. ” So het hulle hom op sy strydwa laat ry. Toe hy in Samaria kom, het hy almal neergevel wat van Agab in Samaria oorgebly het, totdat hy hom uitgeroei het ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy met Elia gespreek het. Jehu het die hele volk byeengebring en vir hulle gesê: “Agab het Baäl maar min gedien; Jehu gaan hom baie dien. Daarom, wat al die profete van Baäl betref, al sy dienaars en al sy priesters, ontbied hulle hier na my toe. Niemand mag ontbreek nie, want ek het 'n groot maaltydoffer vir Baäl gereedgemaak. Niemand wat ontbreek, sal bly leef nie.” Jehu het dit egter met lis gedoen, sodat hy Baäl se dienaars kon vernietig. Jehu sê toe: “Kondig 'n heilige feesgeleentheid af vir Baäl.” Hulle het dit toe uitgeroep. Daarop het Jehu boodskappers deur die hele Israel gestuur, en al die dienaars van Baäl het gekom. Daar was niemand in die land oor wat nie gekom het nie. Hulle het toe in Baäl se tempel ingegaan. Die tempel van Baäl was van hoek tot kant gevul. Jehu sê toe vir die een wat in beheer was van die klerekamer: “Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl.” Hy het vir hulle die feesklere uitgebring. Jehu en Jonadab, seun van Regab, het die tempel van Baäl binnegegaan. Toe sê hy vir die dienaars van Baäl: “Maak doodseker en sien toe dat hier nie dienaars van die Here saam met julle is nie, maar alleen die dienaars van Baäl.” Toe hulle ingegaan het om maaltydoffers en •brandoffers te bring, het Jehu buite vir hom tagtig man opgestel en gesê: “Die man wat enige van die manne wat ek in julle hande oorlewer, laat vrykom – sy lewe sal geneem word in die plek van die een wat vrykom.” Toe hy klaar die brandoffer gebring het, sê Jehu vir die hardlopers en die adjudante: “Gaan in, vel hulle neer! Niemand mag uitgaan nie!” Hulle het hulle toe neergevel met die skerpte van die swaard. Die hardlopers en adjudante het hulle uitgegooi en deurgedring tot in die woondeel van die tempelkompleks van Baäl. Hulle het die gedenkstene uit die tempel van Baäl uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die gedenksteen van Baäl afgebreek, ook die tempel van Baäl afgebreek en dit plekke vir ontlasting gemaak; dit is vandag nog so. Jehu het Baäl uit Israel verdelg. Maar die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, die sondes waarmee hy Israel laat sondig het, daarvan het Jehu nie afgewyk nie – die goue kalwers wat in Bet-El en Dan was. Die Here het toe vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur uit te voer wat reg is in my oë. Alles wat Ek in gedagte gehad het vir die huis van Agab, het jy uitgevoer. Daarom sal daar vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. ” Jehu het egter nie daarby gehou om die wet van die Here, die God van Israel, met sy hele hart te volg nie. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie. In daardie tyd het die Here begin om dele van Israel af te sny. Gasael het hulle verslaan in die hele gebied van Israel vanaf die Jordaan ooswaarts: die hele gebied van Gilead waar die stamme van Gad, Ruben en Manasse was, van Aroër af, wat langs die Arnondal lê – Gilead, sowel as Basan. Die verdere geskiedenis van Jehu, alles wat hy gedoen het, al sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Jehu het by sy voorouers gaan rus en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Joagas het in sy plek koning geword. Die tydperk wat Jehu in Samaria as koning geheers het oor Israel, was agt-en-twintig jaar. Toe Atalia, Ahasia se moeder, sien dat haar seun dood is, het sy daartoe oorgegaan om die hele koninklike geslag om die lewe te bring. Jehoseba, 'n dogter van koning Jehoram, Ahasia se suster, het egter vir Jehoas, seun van Ahasia, gesteel tussen die koning se seuns uit wat doodgemaak sou word, en hom en sy oppasser na 'n slaapkamer geneem. Sy het hom weggesteek vir Atalia, sodat hy nie doodgemaak is nie. Saam met haar is hy ses jaar lank versteek in die huis van die Here, terwyl Atalia oor die land regeer het. Maar in die sewende jaar het Jojada iemand gestuur en die •aanvoerders van honderd van die Kariërs en die hardlopers laat haal. Hy het hulle by hom in die huis van die Here ingeneem, met hulle 'n ooreenkoms gesluit en hulle 'n eed laat aflê in die huis van die Here. Daarna het hy hulle die koning se seun gewys. Hy het hulle beveel: “Dit is wat julle moet doen: Van julle wat op die Sabbat aan diens is – dit is die derde wat gewoonlik wagstaan by die koninklike paleis, die derde wat by die Surpoort is, asook die derde wat in die poort agter die hardlopers is – moet om die beurt wag hou by die paleis. Die ander twee afdelings van julle, almal wat op die Sabbat van diens af is, moet wag hou by die huis van die Here, by die koning. Julle moet rondom die koning stelling inneem, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigeen wat deur die kordon wil breek, moet doodgemaak word. Julle moet by die koning wees, wanneer hy uitgaan en wanneer hy ingaan.” Die aanvoerders van honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat op die Sabbat aan diens was en dié wat op die Sabbat van diens af was, en na die priester Jojada gegaan. Die priester het toe die vegspiese en rondeskilde wat aan koning Dawid behoort het en in die huis van die Here was, vir die aanvoerders van honderd gegee. Die hardlopers het elkeen met sy wapens in sy hand vanaf die regterkant van die •tempel tot aan die linkerkant van die tempel gaan staan, voor die altaar en voor die tempelgebou, rondom die koning. Toe bring Jojada die seun van die koning uit en plaas die kroon en koninklike simbole op hom. So het hulle hom koning gemaak, hom gesalf, hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!” Toe Atalia die uitroepe van die hardlopers en die volk hoor, het sy na die volk in die huis van die Here gegaan. Sy sien toe, sowaar, daar staan die koning by die pilaar, soos dit die gebruik was, en die aanvoerders met die trompette by die koning, terwyl die hele volk van die land verheug is, op trompette blaas! Toe skeur Atalia haar klere en roep uit: “Verraad! Verraad!” Die priester Jojada gee toe die aanvoerders van honderd, die bevelvoerders van die leër, opdrag en sê vir hulle: “Neem haar buite die kordon. Dié wat haar volg, moet met die swaard doodgemaak word.” Ja, die priester het gesê: “Sy moet nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.” Hulle het haar beetgepak, en toe sy die koninklike paleis met die ingang waardeur die perde gaan, bereik, is sy daar doodgemaak. Daarop het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here aan die een kant en die koning en die volk aan die ander kant, dat hulle die volk van die Here sou wees; asook 'n verbond tussen die koning en die volk. Die hele volk van die land het toe die tempel van Baäl binnegegaan en dit afgebreek. Sy altare en sy beelde het hulle heeltemal stukkend gebreek. Vir Mattan, die priester van Baäl, het hulle voor die altare doodgemaak. Daarna het die priester Jojada opsigters oor die huis van die Here aangestel. Hy het die aanvoerders van honderd, die Kariërs, die hardlopers en die hele volk van die land geneem, en hulle het die koning uit die huis van die Here afgebring. Hulle het met die pad deur die poort van die hardlopers die koninklike paleis binnegegaan. Hy het toe op die koninklike troon gaan sit. Die hele volk van die land was verheug, en die stad was rustig, al het hulle Atalia met die swaard doodgemaak in die koninklike paleis. Jehoas was sewe jaar oud toe hy koning geword het. In die sewende regeringsjaar van Jehu het Jehoas koning geword, en hy het veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sibja, uit Berseba. Jehoas het gedoen wat reg is in die oë van die Here solank as wat die priester Jojada hom onderrig het. Net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand op die offerhoogtes. Toe sê Jehoas vir die priesters: “Al die silwer van die •heilige gawes wat na die huis van die Here gebring word, die losgeld by 'n volkstelling, die geld van die loskoopwaardes van persone, asook enige geld wat iemand graag na die huis van die Here wil bring, moet die priesters neem, elkeen van sy penningmeester. Hulle moet dan self die bouvallige plekke in die •tempel herstel, elke bouvallige plek wat gevind kon word.” In die drie-en-twintigste regeringsjaar van koning Jehoas het die priesters egter nog nie die bouvallige plekke in die tempel herstel nie. Koning Jehoas ontbied toe die priester Jojada en die ander priesters, en sê vir hulle: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moet dan nou nie meer geld neem van julle penningmeesters nie, maar dit moet vir die herstel van die bouvallige plekke in die tempel oorhandig word.” Die priesters het toe ingestem om nie enige geld van die volk in ontvangs te neem nie, en om nie die bouvallige plekke in die tempel te herstel nie. Die priester Jojada het 'n kis geneem, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant, soos mens die huis van die Here binnegaan. Die priesters wat deurwagters was, het al die geld wat in die huis van die Here ingebring is, daarin geplaas. Sodra hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester opgegaan na die tempel, die geld in 'n sak toegebind, en die geld getel wat in die huis van die Here gevind is. Hulle het die geld, waarvan die waarde vasgestel is, oorhandig aan die voormanne wat by die huis van die Here aangestel was. Hulle het dit dan uitgekeer aan die skrynwerkers en bouers wat aan die huis van die Here gewerk het, en ook aan die messelaars en die klipkappers om hout en gekapte klip te koop, om daarmee die bouvallige plekke in die huis van die Here te herstel. Ja, dit was vir die herstelwerk, vir alle uitgawes aan die huis van die Here. Daar is egter nie vir die huis van die Here silwerbakke, messe, offerbakke of trompette – enige goue of silwergereedskap – gemaak van die geld wat in die huis van die Here ingebring is nie; maar hulle het die geld aan die voormanne oorhandig, en dié het daarmee die huis van die Here herstel. Hulle het geen rekenskap geëis van die manne aan wie hulle die geld oorhandig het om vir die werksmanne te gee nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Die geld van die •hersteloffers en die geld van die •reinigingsoffers is nie ingeneem in die huis van die Here nie; dit het aan die priesters behoort. In dié tyd het Gasael, die koning van Aram, opgetrek, teen Gat oorlog gevoer en dit ingeneem. Toe Gasael hom voorberei om teen Jerusalem op te trek, het Jehoas, koning van Juda, al die heilige gawes geneem wat sy voorvaders Josafat, Jehoram en Ahasia, konings van Juda, gewy het, asook sy eie heilige gawes en al die goud wat te vinde was in die skatkamers van die huis van die Here en die koninklike paleis, en dit vir Gasael, koning van Aram, gestuur. Gasael het toe van Jerusalem af weggetrek. Die verdere geskiedenis van Jehoas en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Sy amptenare het in opstand gekom, 'n komplot gesmee en Jehoas neergevel in Bet-Millo, waar 'n mens afgaan na Silla. Josabad, seun van Simat, en Josabad, seun van Somer, sy amptenare, het hom neergevel, en hy het gesterf. Hy is begrawe by sy voorvaders in die Stad van Dawid. Amasia, sy seun, het in sy plek koning geword. In die drie-en-twintigste jaar van Jehoas, seun van Ahasia, die koning van Juda, het Joagas, seun van Jehu, in Samaria koning geword oor Israel, sewentien jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die sondes nagevolg van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het; hy het nie daarvan afgewyk nie. Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand en Hy het hulle oorgegee in die hand van Gasael, die koning van Aram, en in die hand van Ben-Hadad, die seun van Gasael, gedurende daardie hele tyd. Maar Joagas het die Here se guns gesoek, en die Here het na hom geluister, want Hy het die verdrukking van Israel raakgesien; ja, die koning van Aram het hulle onderdruk. Die Here het toe vir Israel 'n verlosser gegee, en hulle het onder die hand van Aram uitgekom. Die Israeliete kon toe weer in hulle tente woon soos voorheen. Maar hulle het nie afgewyk van die sondes van die huis van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie. Daarmee het Joagas volgehou. Selfs die asjera het in Samaria bly staan. Gasael het egter vir Joagas geen manskappe oorgelaat nie, behalwe vyftig perde en tien strydwaens, en tien afdelings voetsoldate. Ja, die koning van Aram het hulle ten gronde laat gaan, hy het hulle gemaak soos stof wat 'n mens vertrap. Die verdere geskiedenis van Joagas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Joagas het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Joas het in sy plek koning geword. In die sewe-en-dertigste regeringsjaar van Jehoas, die koning van Juda, het Joas, seun van Joagas, in Samaria koning geword oor Israel, sestien jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van al die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. Hy het daarmee volgehou. Die verdere geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy geveg het teen Amasia, die koning van Juda, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Joas het by sy voorouers gaan rus. Toe het Jerobeam op sy troon gaan sit. Joas is in Samaria begrawe by die konings van Israel. Elisa was reeds siek aan die kwaal waaraan hy sou sterf. Joas, die koning van Israel, het na hom toe afgegaan, in sy teenwoordigheid gehuil en gesê: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Elisa sê toe vir hom: “Kry 'n boog en pyle!” Hy kry toe vir hom 'n boog en pyle. Daarop sê hy vir die koning van Israel: “Hou die boog gereed!” Toe hy dit gereedhou, lê Elisa sy hande op die koning se hande. Hy sê toe: “Maak die venster aan die oostekant oop!” Hy het dit oopgemaak. Daarop sê Elisa: “Skiet!” Hy skiet toe. “'n Pyl van oorwinning vir die Here, 'n pyl van oorwinning teen Aram,” het Elisa gesê. “Jy sal Aram in Afek heeltemal verslaan.” Daarop sê hy: “Neem die pyle!” Hy het dit geneem. “Slaan teen die grond!” sê hy toe vir die koning van Israel. Hy slaan toe drie maal en hou op. Die man van God het hom bloedig vererg vir hom en sê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het; maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.” Elisa het toe gesterf en hulle het hom begrawe. Moabitiese roofbendes het met die aanbreek van die jaar die land binnegeval. Terwyl mense besig was om 'n man te begrawe, sien hulle skielik die bende. Hulle gooi toe die man in die graf van Elisa en gee pad. Toe die man aan Elisa se beendere raak, het hy lewendig geword en regop gaan staan. Gasael, die koning van Aram, het Israel verdruk vir die volle regeringstyd van Joagas. Maar die Here was hulle genadig. Hy het Hom oor hulle ontferm en Hom na hulle gekeer ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie en het hulle nie uit sy teenwoordigheid verdryf nie – tot nou toe. Toe Gasael, die koning van Aram, sterf, het sy seun Ben-Hadad in sy plek koning geword. Joas, seun van Joagas, het die dorpe teruggeneem uit die hand van Ben-Hadad, seun van Gasael, wat hy in die oorlog afgeneem het by Joagas, Joas se vader. Drie maal het Joas hom verslaan en die dorpe van Israel herower. In die tweede regeringsjaar van Joas, seun van Joagas, die koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jehoaddan, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het opgetree net soos sy vader Jehoas opgetree het – net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Pas nadat hy die koningskap stewig in sy hand gehad het, het hy sy amptenare tereggestel – dié wat sy vader, die koning, vermoor het. Die moordenaars se kinders het hy egter nie laat doodmaak nie, soos geskryf is in die •boekrol met die Wet van Moses, waar die Here beveel: “Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterf.” Hy is die een wat tienduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het. Hy het Sela in die geveg verower, en dit die naam Jokteël gegee, soos dit vandag nog is. In dié tyd het Amasia boodskappers na Joas, seun van Joagas, seun van Jehu, die koning van Israel, gestuur om vir hom te sê: “Kom ons kyk mekaar in die oë. ” Maar Joas, koning van Israel, het vir Amasia, koning van Juda, laat weet: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap. Jy het inderdaad die Edomiete 'n nederlaag toegedien, en jou hart is opgetoë. Geniet die eer en bly tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?” Amasia het egter nie geluister nie. Joas, koning van Israel, trek toe op en hy en Amasia, koning van Juda, het mekaar in die oë gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort. Maar Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. Joas, koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, seun van Ahasia, koning van Juda, in Bet-Semes gevange geneem. Joas het Jerusalem binnegegaan en die stadsmuur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort – vierhonderd el. Hy het al die goud en silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was, saam met gyselaars, en na Samaria teruggekeer. Die verdere geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amasia, die koning van Juda oorlog gevoer het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Joas het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe by die konings van Israel. Jerobeam, sy seun, het in sy plek koning geword. Amasia, seun van Jehoas, koning van Juda, het ná die dood van Joas, seun van Joagas, koning van Israel, nog vyftien jaar lank geleef. Die verdere geskiedenis van Amasia, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Toe daar in Jerusalem 'n komplot teen hom gesmee is, het hy na Lagis gevlug. Maar hulle het manne agter hom aan gestuur na Lagis, en dié het hom daar doodgemaak. Hulle het hom op perde vervoer, en hy is in Jerusalem begrawe by sy voorouers in die •Stad van Dawid. Die hele bevolking van Juda het toe vir Asarja geneem – hy was sestien jaar oud – en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amasia. Hy is die een wat Elat herbou en teruggebring het onder Juda se beheer, nadat die koning by sy voorouers gaan rus het. In die vyftiende regeringsjaar van Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda, het Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel, in Samaria koning geword, een-en-veertig jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van al die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het nie. Hy is die een wat die gebied van Israel herstel het, van Lebo-Hamat af tot by die See van die Araba, volgens die woord van die Here, die God van Israel, wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg Jona, seun van Amittai, die profeet wat uit Gat-Gefer gekom het. Die Here het immers gesien dat die ellende van Israel baie bitter was. Dit was klaarpraat met wie gevange geneem is en wie vrygelaat is; en daar was geen helper vir Israel nie. Die Here het nie te kenne gegee dat Hy Israel se naam onder die hemel sou uitwis nie, en Hy het hulle verlos deur die hand van Jerobeam, seun van Joas. Die verdere geskiedenis van Jerobeam, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy oorlog gevoer het, en hoe hy Damaskus en Hamat, wat vroeër aan Juda onderdanig was, weer onder beheer van Israel gebring het. Is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Jerobeam het by sy voorouers gaan rus, by die konings van Israel. Sagaria, sy seun, het in sy plek koning geword. In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Jerobeam, die koning van Israel, het Asarja, seun van Amasia, die koning van Juda, koning geword. Hy was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jegolja, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Amasia gedoen het – net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Die Here het die koning getref, en hy het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, en Jotam, die seun van die koning, was hoof van die hofhouding en het reg gespreek oor die volk van die land. Die verdere geskiedenis van Asarja en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Asarja het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid by sy voorouers begrawe. Jotam, sy seun, het in sy plek koning geword. In die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Sagaria, seun van Jerobeam, koning geword oor Israel in Samaria, ses maande lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het nie. Sallum, seun van Jabes, het 'n komplot teen hom gesmee, hom voor die volk neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword. Die verdere geskiedenis van Sagaria, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. Dit was die vervulling van die woord van die Here wat Hy tot Jehu gespreek het: “Daar sal vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Dit was toe so. Sallum, seun van Jabes, het koning geword in die nege-en-dertigste regeringsjaar van Ussia, die koning van Juda. Hy het 'n maand lank in Samaria regeer. Menahem, seun van Gadi, het opgetrek uit Tirsa en in Samaria aangekom. Hy het Sallum, seun van Jabes, in Samaria neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword. Die verdere geskiedenis van Sallum en die komplot wat hy gesmee het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. Menahem het in dié tyd Tifsag verwoes met alles wat daarin was, die hele gebied van Tirsa af. Omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie, het hy verwoesting aangerig. Al die swanger vroue het hy oopgesny. In die nege-en-dertigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Menahem, seun van Gadi, koning geword oor Israel in Samaria, tien jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. In sy hele regeringstyd het hy nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. Pul, die koning van Assirië, het die land binnegeval. Menahem het aan Pul duisend kikkar silwer gegee, sodat hy hom sou ondersteun om sy beheer oor die koningskap te versterk. Menahem het die geld van Israel gevorder, van al die vermoënde manne, sodat hy dit vir die koning van Assirië kon gee – vyftig sikkel silwer van elke man. Die koning van Assirië het toe omgedraai en nie daar in die land gebly nie. Die verdere geskiedenis van Menahem, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Menahem het by sy voorouers gaan rus, en Pekahia, sy seun, het in sy plek koning geword. In die vyftigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Pekahia, seun van Menahem, in Samaria koning geword oor Israel, twee jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. Peka, seun van Remalja, sy adjudant, het egter teen hom saamgesweer en hom in Samaria, in die vesting van die koninklike paleis neergevel saam met Argob en Haärje. By hom was vyftig man uit Gilead. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword. Die verdere geskiedenis van Pekahia, alles wat hy gedoen het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. In die twee-en-vyftigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Peka, seun van Remalja, koning geword oor Israel in Samaria, en twintig jaar lank regeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. In die tyd van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gekom en Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea, die hele gebied van Naftali, verower, en die inwoners weggevoer na Assirië. Hosea, seun van Ela, het 'n komplot gesmee teen Peka, seun van Remalja, hom neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword in die twintigste regeringsjaar van Jotam, seun van Ussia. Die verdere geskiedenis van Peka en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. In die tweede regeringsjaar van Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, het Jotam, seun van Ussia, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jerusa, dogter van Sadok. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Ussia gedoen het – net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Dit is hy wat die boonste poort van die huis van die Here gebou het. Die verdere geskiedenis van Jotam, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? In daardie tyd het die Here die eerste keer vir Resin, die koning van Aram, en Peka, seun van Remalja, teen Juda uitgestuur. Jotam het by sy voorouers gaan rus, en is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid, sy voorvader. Agas, sy seun, het in sy plek koning geword. In die sewentiende regeringsjaar van Peka, seun van Remalja, het Agas, seun van Jotam, die koning van Juda, koning geword. Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God, soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die pad van die konings van Israel gevolg. Hy het selfs sy seun in die vuur geoffer, soos die afstootlike gebruike was van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het. Hy het geslag en offers verbrand by die offerhoogtes, op die heuwels en onder elke skaduryke boom. In dié tyd het Resin, die koning van Aram, en Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem vir 'n geveg. Hulle het Agas beleër, maar hulle kon nie 'n geveg afdwing nie. In daardie tyd het Resin, die koning van Aram, Elat herower vir Aram, en die Judeërs uit Elat uitgedryf. Die Edomiete het toe Elat binnegegaan en daar gaan woon; dit is vandag nog so. Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur om vir hom te sê: “Ek is u dienaar en u seun. Trek op en verlos my uit die greep van die koning van Aram en uit die greep van die koning van Israel wat teen my opstaan.” Agas het die silwer en goud wat te vinde was in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis, geneem en as 'n geskenk aan die koning van Assirië gestuur. Die koning van Assirië het toe aan sy versoek voldoen. Die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower. Die stad se inwoners het hy weggevoer na Kir, en Resin het hy doodgemaak. Toe koning Agas gegaan het om Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, in Damaskus te ontmoet, het hy die altaar gesien wat in Damaskus was. Koning Agas het toe vir Urija, die priester, 'n model van die altaar gestuur, asook 'n volledige plan vir die oprigting daarvan. Urija, die priester, het die altaar gebou. Net soos koning Agas dit vir hom uit Damaskus gestuur het, het Urija, die priester, dit gemaak, nog voor die koms van koning Agas uit Damaskus. Die koning het van Damaskus af daar aangekom en die altaar gesien. Die koning gaan toe nader aan die altaar, klim daarop, verbrand sy brandoffer en sy •graanoffer, en giet sy •drankoffer uit. Hy het die bloed van sy •maaltydoffer teen die altaar gesprinkel. Die bronsaltaar wat voor die Here was, het hy voor die •tempel verwyder, waar dit tussen die nuwe altaar en die huis van die Here gestaan het, en dit aan die noordekant van dié altaar geplaas. Koning Agas het Urija, die priester, opdrag gegee: “Op die groot altaar moet jy die brandoffer van die oggend en die graanoffer van die aand verbrand, asook die brandoffer van die koning en sy graanoffer, en die brandoffer van die hele volk van die land en hulle graanoffers en drankoffers. Al die bloed van brandoffers en al die bloed van maaltydoffers moet jy daarteen sprinkel. Die bronsaltaar sal egter tot my beskikking wees om 'n godspraak te verkry. ” Urija, die priester, het toe gemaak net soos koning Agas opdrag gegee het. Koning Agas het die rame van die verskuifbare staanders verwyder en die waskomme daarvan afgehaal. Die see het hy afgetel van die bronsbeeste wat daaronder was, en dit op 'n klipvloer neergesit. Die baldakyn wat hulle vir die Sabbat by die tempel aangebou het en die buitenste ingang vir die koning, het hy van die huis van die Here verwyder, ter wille van die koning van Assirië. Die verdere geskiedenis van Agas, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Agas het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hiskia, sy seun, het in sy plek koning geword. In die twaalfde regeringsjaar van Agas, koning van Juda, het Hosea, seun van Ela, in Samaria koning geword oor Israel en nege jaar lank regeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie soos die konings van Israel voor hom nie. Dit is hy teen wie Salmaneser, die koning van Assirië, opgetrek het. Hosea het sy onderdaan geword en was aan hom skatpligtig. Maar die koning van Assirië het by Hosea 'n sameswering ontdek, naamlik dat hy boodskappers gestuur het na So, die koning van Egipte, en nie die belasting vir die koning van Assirië geneem het nie, soos wat jaar ná jaar gebeur het. Daarop het die koning van Assirië hom gevange geneem en in die tronk aangehou. Toe het die koning van Assirië deur die hele land getrek, na Samaria opgeruk en dit drie jaar lank beleër. In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel weggevoer na Assirië. Hy het hulle in Galag en aan die Gabor, 'n rivier in Gosan, en ook in dorpe van Medië, laat woon. Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van die farao, die koning van Egipte, uit. Hulle het vir ander gode ontsag gehad en die voorskrifte gevolg van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit nagekom het. Die Israeliete het dinge versin oor die Here hulle God wat nie reg is nie. Hulle het vir hulle offerhoogtes gebou in al hulle dorpe, of dit nou by 'n wagtoring of by 'n versterkte stad was. Hulle het gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Hulle het daar op al die offerhoogtes offers verbrand, net soos die nasies wat die Here in ballingskap voor hulle uit verdryf het. Hulle het verkeerde dinge gedoen en so die Here uitgetart. Hulle het die afgodsbeelde gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: “Julle mag so iets nie doen nie!” Die Here het Israel en Juda by monde van elkeen van sy profete, deur elke siener, gewaarsku: “Draai terug van julle verkeerde paaie af! Kom my gebooie en vaste voorskrifte na, volgens die hele wet wat Ek julle voorouers beveel het en wat Ek by monde van my diensknegte, die profete, aan julle voorgehou het.” Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was so hardnekkig soos hulle voorouers, wat hulle vertroue nie gestel het in die Here hulle God nie. Hulle het sy vaste voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorouers gesluit het, verwerp, ja, sy bepalings waardeur Hy hulle gewaarsku het. Hulle het agter nuttelose afgode aangeloop en self nutteloos geword. Hulle het die nasies wat rondom hulle was, gevolg – nasies oor wie die Here hulle opdrag gegee het om nie soos hulle te maak nie. Hulle het al die gebooie van die Here hulle God verontagsaam en vir hulle gegote beelde gemaak – daardie twee kalwers! Hulle het 'n asjera gemaak. Hulle het voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en Baäl gedien. Hulle het hulle seuns en hulle dogters in die vuur geoffer, voorspellings gemaak en wiggelary beoefen. Hulle het hulle daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hom so uitgetart. Die Here het baie toornig geword op Israel en hulle uit sy teenwoordigheid verwyder. Niemand het oorgebly nie – slegs die stam van Juda. Ook Juda het nie die gebooie van die Here hulle God nagekom nie, maar het die gebruike van Israel, dit wat hulle gedoen het, gevolg. Die Here het die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle verneder en in die hand van plunderaars oorgegee, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid uitgeban het. Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jerobeam, seun van Nebat, koning gemaak. Jerobeam het Israel van die Here af weggedryf en hulle groot sonde laat doen. Die Israeliete het al die sondes wat Jerobeam gedoen het, nagevolg. Hulle het nie daarvan afgewyk nie, totdat die Here Israel uit sy teenwoordigheid verwyder het, soos wat Hy by monde van al sy diensknegte, die profete, gespreek het. Israel is van sy grond af weggevoer na Assirië; dit is vandag nog so. Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim gebring en hulle in die plek van die Israeliete, in die dorpe van Samaria, gevestig. Hulle het van Samaria besit geneem en hulle in die dorpe daar gevestig. Aan die begin van hulle verblyf het hulle nie vir die Here ontsag gehad nie. Die Here het toe leeus onder hulle ingestuur, wat aanmekaar van hulle doodgemaak het. Hulle het vir die koning van Assirië gesê: “Die nasies wat u weggevoer en in die dorpe van Samaria gevestig het, ken nie die wet van die God van die land nie. Daarom het Hy leeus onder hulle ingestuur en kyk, dié maak hulle dood omdat hulle niks weet van die wet van die God van die land nie.” Die koning van Assirië het toe opdrag gegee: “Laat een van die priesters wat julle daarvandaan weggevoer het, daarheen terugkeer. Hy moet gaan en hom daar vestig, sodat hy hulle die wet van die God van die land kan leer.” Een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, het toe gekom en in Bet-El gaan woon; hy het hulle geleer hoe hulle vir die Here ontsag moet toon. Hulle het egter, nasie vir nasie, steeds hulle eie gode gemaak en in die tempels op die offerhoogtes neergesit, die offerhoogtes wat die mense van Samaria gebou het – nasie vir nasie in hulle dorpe waar hulle gewoon het. Die mense van Babel het Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta het Nergal gemaak, en die mense van Hamat het Asima gemaak. Die mense uit Awwa het Nibgas en Tartak gemaak, en dié uit Sefarwajim het hulle seuns vir Adrammeleg en Annameleg, die gode van Sefarwajim, verbrand. Hulle het ook vir die Here ontsag gehad, maar hulle het vir hulleself uit eie geledere priesters vir die offerhoogtes aangestel, en dié het vir hulle diens gedoen in die tempels op die offerhoogtes. Vir die Here het hulle ontsag gehad, maar hulle eie gode het hulle bly dien in ooreenstemming met die gebruik van die nasies waarvandaan hulle weggevoer is. Tot vandag toe handhaaf hulle die vroeëre gebruike. Hulle het nie ontsag vir die Here nie, en tree nie op in ooreenstemming met die vaste voorskrifte en bepalings wat hulle ontvang het nie, of ooreenkomstig die wet en gebod wat die Here die nageslag van Jakob, aan wie Hy die naam Israel gegee het, beveel het nie. Toe die Here met hulle 'n verbond gesluit het, het Hy hulle beveel: “Julle mag nie vir ander gode ontsag hê, en julle mag nie voor hulle in aanbidding buig nie. Julle mag hulle nie dien nie, en julle mag nie vir hulle offers slag nie. Maar die Here, Hy wat julle met groot krag en 'n uitgestrekte arm uit Egipteland laat optrek het, vir Hom moet julle ontsag hê, voor Hom moet julle in aanbidding buig en vir Hom moet julle offers slag. Die vaste voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het, moet julle altyd noukeurig nakom. Julle mag nie vir ander gode ontsag hê nie. Die verbond wat Ek met julle gesluit het, mag julle nie vergeet nie. Julle mag vir geen ander gode ontsag hê nie – vir die Here julle God alleen moet julle ontsag hê. Hy is die Een wat julle sal red uit die hand van al julle vyande.” Hulle het egter nie geluister nie, maar ooreenkomstig hulle vroeëre gebruike opgetree. Hierdie volksgroepe het vir die Here ontsag gehad, maar hulle gesnede beelde het hulle bly dien. Ook hulle kinders en kleinkinders doen wat hulle voorouers gedoen het; dit is vandag nog so. In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. Op die Here, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die Here vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die Here Moses beveel het, nagekom. Die Here was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia – dit was die sewende regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel – het Salmaneser, die koning van Assirië, teen Samaria opgetrek en dit beleër. En ná verloop van drie jaar het hy dit ingeneem. In die sesde regeringsjaar van Hiskia – dit was die negende regeringsjaar van Hosea, die koning van Israel – is Samaria ingeneem. Die koning van Assirië het Israel weggevoer in ballingskap na Assirië, en hulle in Galag en aan die Gabor, die rivier van Gosan, hervestig, en ook in die dorpe van Medië. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die stem van die Here hulle God nie en sy verbond oortree het – alles wat Moses, die dienskneg van die Here beveel het. Hulle het nie geluister nie en dit nie uitgevoer nie. In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. Hiskia, koning van Juda, het toe vir die koning van Assirië by Lagis laat weet: “Ek het verkeerd opgetree, draai van my af weg! Wat u my oplê, sal ek dra.” Die koning van Assirië het toe van Hiskia, koning van Juda, driehonderd kikkar silwer en dertig kikkar goud geëis. Hiskia het toe al die silwer oorhandig wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was. In dieselfde tyd het Hiskia die deure van die Here se •tempel afgestroop – die goue beslag waarmee Hiskia, koning van Juda, dit oorgetrek het. Hy het dit aan die koning van Assirië oorhandig. Die koning van Assirië stuur toe die tartan, die rabsaries en die rabsakee met 'n groot leërmag vanaf Lagis na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het opgetrek en by Jerusalem aangekom. Nadat hulle opgetrek en daar aangekom het, het hulle stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is, en die koning ontbied. Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, het uitgegaan na hulle toe, asook Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf, die herout. Die rabsakee sê toe vir hulle: “Sê tog vir Hiskia, ‘So sê die opperkoning, die koning van Assirië: “Wat is hierdie bron van vertroue waarop jy staatmaak? Jy dink sekerlik lippetaal is 'n taktiek en 'n kragtige wapen vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan nou dat jy teen my in opstand is? Jy stel sowaar nou jou vertroue op Egipte, hierdie geknakte rietstaf wat in 'n mens se handpalm steek en dit deurboor wanneer jy daarop leun. So is die farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. En as julle vir my sou sê, ‘Op die Here ons God vertrou ons’? Is Hy dan nie die Een wie se offerhoogtes en altare Hiskia verwyder het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het, ‘Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle in aanbidding buig!’ nie?” ’ “Daarom, gaan gerus 'n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. Hoe sal jy net een •streekgoewerneur kan terugdryf, een van die onbelangrikste dienaars van my heer, wanneer jy jou vertroue stel op Egipte vir 'n strydwamag en perde? ‘Daarom’, het my heer gesê, ‘het ek sonder die Here se medewete teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Dit is die Here wat vir my gesê het: “Trek op teen hierdie land en verwoes dit!” ’ ” Eljakim, seun van Gilkija, asook Sebna en Joag, sê toe vir die rabsakee: “Praat asseblief •Aramees met u dienaars, want ons verstaan dit. Moenie met ons Judees praat ten aanhore van die manskappe wat op die stadsmuur is nie.” Maar die rabsakee het vir hulle gesê: “Is dit net na jou heer en na jou wat my heer my gestuur het om hierdie dinge te sê? Is dit nie ook na die manne wat op die stadsmuur sit nie, wat saam met julle hulle ontlasting sal eet en hulle urine sal drink?” Toe gaan staan die rabsakee en roep met 'n harde stem in Judees uit en sê: “Luister na die woord van die opperkoning, die koning van Assirië! So sê die koning, ‘Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy sal julle nie uit my hand kan red nie. Moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou deur te sê: “Die Here sal ons beslis red, en hierdie stad sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” ’ Julle moet nie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië, ‘As julle met my 'n ooreenkoms aangaan en uitkom na my toe, sal elkeen van sy wingerdstok en sy vyeboom eet, en elkeen water uit sy eie opgaarput drink, totdat ek kom en julle neem na 'n land soos julle land – 'n land met koring en •nuwe wyn, 'n land met brood en wingerde, 'n land met olyfbome, olie en heuning. Julle sal leef en nie sterf nie. Julle moet nie na Hiskia luister nie, want hy mislei julle deur te sê: “Die Here sal ons red!” Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon húlle Samaria uit my hand red? Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here dan Jerusalem uit my hand sal red?’ ” Die manskappe het egter stilgebly en hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie, want die bevel van die koning was: “Julle moet hom nie antwoord nie!” Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf en herout, het by Hiskia aangekom met geskeurde klere, en aan hom die woorde van die rabsakee meegedeel. Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die huis van die Here gegaan. Hy stuur toe vir Eljakim, hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en die oudstes van die priesters, in hulle rouklere na die profeet Jesaja, seun van Amos. Hulle het vir hom gesê: “So sê Hiskia, ‘Hierdie dag is 'n dag van benoudheid en straf en vernedering; want die kinders het tot by die opening van die baarmoeder gekom, maar daar is geen krag om geboorte te gee nie. Miskien hoor die Here u God al die woorde van die rabsakee vir wie die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God uit te tart, en miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het. ’ ” Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, sê Jesaja vir hulle: “So moet julle vir julle heer sê, ‘So sê die Here: “Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. Kyk, Ek gaan 'n gees van hom besit laat neem, en hy sal 'n gerug hoor en terugkeer na sy land. Dan sal Ek hom in sy eie land deur die swaard laat val.” ’ ” Die rabsakee het teruggegaan en die koning van Assirië aangetref waar hy besig was om teen Libna te veg. Hy het immers gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. Die koning van Assirië het egter 'n berig gekry oor Tirhaka, die koning van Kus, wat lui: “Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg!” Hy stuur toe weer boodskappers na Hiskia, met die woorde: “So moet julle vir Hiskia, die koning van Juda sê, ‘Moenie dat jou God, op wie jy vertrou, jou bedrieg met die woorde: “Jerusalem sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” Kyk, jy het self gehoor wat die konings van Assirië gedoen het aan al die lande deur hulle aan volledige vernietiging oor te gee. Sal jy dan gered word? Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders uitgedelg is, hulle gered – Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa?’ ” Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here. Hiskia het dit daar voor die Here oopgesprei. Hiskia het toe voor die Here gebid en gesê: “ Here, God van Israel wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk! Hoor die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! Dit is inderdaad so, Here, dat die konings van Assirië die nasies en hulle lande verwoes en hulle gode in die vuur gegooi het. Want dit was nie gode nie, maar net die werk van mensehande, hout en klip, en hulle het dit vernietig. Daarom, Here ons God, verlos ons asseblief uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, alleen God is. ” Jesaja, seun van Amos, het toe vir Hiskia laat weet: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Wat jy tot My gebid het oor Sanherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor. ’ Dit is die woord wat die Here oor hom spreek, “ ‘Sy verag jou, dryf die spot met jou, die maagd, die dogter van Sion. Agter jou rug skud sy haar kop, die dogter van Jerusalem. Wie het jy uitgetart en belaster? Teen wie het jy jou stem verhef? Jy het uit die hoogte neergesien op die Heilige van Israel! Deur jou boodskappers het jy die Heer uitgetart. Jy het gesê: “Met die strydwaens van my strydwamag het ek die hoogste berge bestyg, die uithoeke van die Libanon. Ek het sy hoogste seders afgekap, die keur van sy sipresse. Ek het sy verste oornagplekke binnegegaan, sy digste struikgewasse. Ek is die een wat gegrawe en vreemde water gedrink het. Met die holte van my voet het ek al die strome van Egipte drooggelê.” “ ‘Het jy dit nie gehoor nie? In die verre verlede het Ek juis dit voorberei; in die voortyd het Ek dit beplan. Nou laat Ek dit aanbreek – dat jy versterkte stede puinhope maak. Hulle inwoners was magteloos, hulle was verskrik en beskaamd. Hulle was veldplante en groen spriete, gras op dakke – verskroeid voordat dit kon saad maak. “ ‘Waar jy woon, jou kom en jou gaan – ken Ek, ook jou getier teen My. Omdat jy so teen My getier het, jou astrantheid my ore bereik het, sit ek my haak deur jou neus en my stang in jou mond. Ek laat jou terugkeer met die pad waarmee jy gekom het. “ ‘Dit sal vir jou, Hiskia, die teken wees: Eet vanjaar die opslaggraan, in die tweede jaar dit wat self opkom; maar in die derde jaar moet julle saai en oes, wingerde plant en die vrugte daarvan eet. “ ‘Wat van die huis van Juda ontkom het, wat oorgebly het, sal na onder wortel skiet, en na bo vrugte dra. Ja, uit Jerusalem sal wat oorgebly het, uitspruit, uit die berg Sion dit wat ontkom het. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen. ’ ” “Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië, “ ‘Hy sal hierdie stad nie binnekom nie; hy sal daarin nie 'n pyl afskiet nie; hy sal daarteen nie opruk met 'n skild nie; hy sal nie 'n beleëringswal daarteen ophoop nie. Met die pad waarmee hy gekom het, daarmee sal hy terugkeer, en hierdie stad sal hy nie binnekom nie,’ is die uitspraak van die Here. ‘Ek sal hierdie stad afskerm om dit te red, om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg. ’ ” Daardie nag het 'n •engel van die Here uitgetrek en in die kamp van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtigduisend neergevel. Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke! Daarop het Sanherib, die koning van Assirië, kamp opgebreek, weggetrek en teruggegaan. Hy het in Nineve gebly. En toe, terwyl hy besig was om in aanbidding te kniel in die tempel van Nisrok, sy god, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergevel. Hulle het na veiligheid in die land Ararat gevlug. Esarhaddon, sy seun, het in sy plek koning geword. In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Jesaja, seun van Amos, die profeet, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf, jy sal nie leef nie.’ ” Hiskia het sy gesig na die muur gedraai, en tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek voor U geleef het in getrouheid en met 'n onverdeelde hart, dat ek gedoen het wat goed is in u oë. ” Hiskia het toe bitterlik gehuil. Jesaja was nog nie by die middelste voorhof uit nie, toe die woord van die Here tot hom kom en sê: “Draai om en sê vir Hiskia, die leier van my volk, ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek gaan jou gesond maak. Op die derde dag sal jy weer opgaan na die huis van die Here. Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, en jou en hierdie stad sal Ek uit die greep van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad afskerm om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg. ” ’ ” Toe sê Jesaja: “Bring saamgeperste droë vye!” Hulle het dit gebring en op die sweer gesit; en hy het bly leef. Daarop vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my gesond sal maak, en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die Here? ” Jesaja het geantwoord: “Dit sal vir jou van die Here af die teken wees dat die Here die woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer: Moet die skaduwee tien eenhede vorentoe skuif, of moet dit tien eenhede terugskuif?” Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien eenhede vooruit te skuif. Nee, die skaduwee moet eerder tien eenhede terugskuif.” Toe het Jesaja, die profeet, die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds op die sonwyser van Agas afgesak het, tien eenhede laat terugskuif. In daardie tyd het Merodag-Baladan, seun van Baladan, die koning van Babilonië, briewe en 'n geskenk na Hiskia gestuur, want hy het gehoor dat Hiskia siek is. Hiskia het die boodskappers te woord gestaan en hulle sy hele skatkamer gewys – die silwer, die goud, die speserye en die kosbare olie – ook sy arsenaal en alles wat in sy voorraadkamers te vinde was. Daar was niks in sy paleis of in sy hele koninkryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie. Jesaja, die profeet, het na koning Hiskia gekom en hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en van waar af het hulle na jou toe gekom?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land het hulle gekom, uit Babilonië.” Jesaja vra toe: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het geantwoord: “Alles wat in my paleis is, het hulle gesien. Daar is niks in my voorraadkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hoor die woord van die Here, ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, weggedra sal word na Babel; daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê. ‘En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.’ ” Hiskia sê toe vir Jesaja: “Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Sal daar dan nie tog maar net vrede en bestendigheid in my tyd wees nie? Die verdere geskiedenis van Hiskia, al sy magtige dade, dat hy die dam en die tonnel gemaak, en die water na die stad gebring het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Manasse het in sy plek koning geword. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gefsiba. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. In ooreenstemming met die afstootlike gebruike van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare opgerig vir Baäl en 'n asjera gemaak, soos wat Agab, die koning van Israel, gemaak het; en hy het voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die Here gebou, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem sal Ek my Naam vestig.” In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy het sy seun in die vuur geoffer, voortekens gelees, wiggelary beoefen en dodebesweerders en waarsêers aangestel. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, om Hom uit te tart. Hy het die gesnede beeld van Asjera wat hy gemaak het, in die •tempel geplaas, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie tempel en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie meer die voete van Israel laat rondswerf, weg van die grond wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie, as hulle maar net nougeset alles doen wat Ek hulle beveel het – die hele wet wat my dienskneg Moses hulle beveel het.” Maar hulle het nie geluister nie, en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die Here voor die Israeliete uitgedelg het. Die Here het by monde van sy diensknegte, die profete, gesê: “ Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie afstootlike dinge gedoen het – hy het meer kwaad gedoen as alles wat die Amoriete voor hom gedoen het, en hy het ook Juda laat sondig met sy afgodsbeelde – daarom, so sê die Here, die God van Israel, “ ‘Kyk, Ek gaan so 'n onheil oor Jerusalem en Juda bring, dat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal tuit. Ek gaan oor Jerusalem die maatlyn van Samaria span, en die skietlood van die huis van Agab. Ek gaan Jerusalem skoonvee soos mens 'n skottel skoonvee – as dit skoongevee is, word dit omgekeer. Ek sal wat oorgebly het van my erfenis, verstoot; Ek sal hulle oorgee in die hand van hulle vyande. Hulle sal buit word en oorlogsroof vir al hulle vyande, omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My bly uittart het, van die dag dat hulle voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe.’ ” Boonop het Manasse so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem daarmee van hoek tot kant gevul het. Dit was afgesien van sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die verdere geskiedenis van Manasse, alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gepleeg het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Manasse het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe in die tuin van sy paleis, in die tuin van Ussa. Sy seun Amon het in sy plek koning geword. Amon was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Mesullemet, dogter van Garus, uit Jotba. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, soos sy vader Manasse gedoen het. Hy het die pad wat sy vader geloop het, volledig gevolg. Hy het die afgodsbeelde gedien wat sy vader gedien het, en voor hulle in aanbidding gebuig. Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat. Hy het nie die pad van die Here gevolg nie. Amon se amptenare het toe 'n komplot teen hom gesmee. Hulle het die koning in sy paleis doodgemaak. Maar die volk van die land het almal wat teen koning Amon 'n komplot gesmee het, doodgemaak. Toe het die volk van die land Josia, sy seun, in sy plek koning gemaak. Die verdere geskiedenis van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Hy is begrawe in sy graf in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het in sy plek koning geword. Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jedida, dogter van Adaja, uit Boskat. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alle opsigte die pad van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. In die agttiende regeringsjaar van koning Josia het die koning vir Safan, seun van Asalja, seun van Mesullam, die sekretaris, na die huis van die Here gestuur met die opdrag: “Gaan op na Gilkija, die hoëpriester, en laat hy die geld gereedkry wat in die huis van die Here ingebring is, die geld wat die deurwagters by die volk ingesamel het. Hulle moet dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel is by die huis van die Here, sodat hulle dit op hulle beurt vir die manne kan gee wat die werk doen, dié wat in die huis van die Here is om die bouvallige plekke in die •tempel te herstel, aan die skrynwerkers, die bouers en die messelaars, om hout en gekapte klip te koop vir die herstel van die tempel.” Daar is egter nie van hulle rekenskap geëis oor die geld wat aan hulle oorhandig is nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Gilkija, die hoëpriester, sê toe vir Safan, die sekretaris: “Dié •boekrol met die wet het ek in die huis van die Here gevind.” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee, en hy het dit gelees. Toe Safan, die sekretaris, by die koning kom, het hy aan die koning verslag gedoen en gesê: “U dienaars het die geld wat in die tempel gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan die werksmense wat aangestel is by die huis van die Here. ” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Hier is 'n boekrol wat Gilkija, die priester, vir my gegee het.” Safan lees dit toe vir die koning. Toe die koning die woorde van die boekrol met die wet hoor, het hy sy klere geskeur. Die koning het Gilkija, die priester, en ook Agikam, seun van Safan, Agbor, seun van Miga, Safan, die sekretaris, en Asaja, die koning se dienaar, hierdie opdrag gegee: “Gaan raadpleeg die Here namens my en die volk en die hele Juda oor die woorde van hierdie boekrol wat gevind is, want die Here se woede wat teen ons ontvlam het, is groot, omdat ons voorouers nie gehoorsaam was aan die woorde van hierdie boekrol deur nie op te tree ooreenkomstig alles wat daarop geskryf is nie.” Gilkija, die priester, Agikam, Agbor, Safan en Asaja het toe na Gulda, die profetes, gegaan. Sy was die vrou van Sallum, seun van Tikwa, seun van Gargas, die toesighouer oor die priesterklere. Sy het in Jerusalem, in die nuwe stadsdeel gebly. Hulle het met haar gaan praat, en sy het vir hulle gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek en sy inwoners – al die woorde van die boekrol wat die koning van Juda gelees het – omdat hulle My verlaat het, en vir ander gode offers verbrand en My gevolglik uitgetart het met al hulle handewerk. My woede het teen hierdie plek ontvlam en dit sal nie geblus word nie.” ’ En vir die koning van Juda, wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg, vir hom moet julle so sê, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Wat die woorde betref wat jy gehoor het – omdat jou hart sag is, en jy jouself voor die Here verootmoedig het toe jy gehoor het wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gesê het, dat hulle 'n skrikbeeld en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor My gehuil het, sal Ek ook luister,” is die uitspraak van die Here. “ Daarom, kyk, Ek gaan jou met jou voorouers verenig; jy sal in vrede in jou graf met hulle verenig word, en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.” ’ ” Hulle het toe aan die koning verslag gedoen. Die koning het boodskappers uitgestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom byeengebring. Die koning het toe opgegaan na die huis van die Here; al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem was saam met hom, ook die priesters en die profete, ja, die hele volk, van klein tot groot. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die Here gevind is, voorgelees. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan en voor die Here die verbond gesluit. Hulle het onderneem om die Here te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met hulle hele hart en hulle hele wese na te kom, deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, gestand te doen. Die hele volk het tot die verbond toegetree. Die koning het toe vir Gilkija, die hoëpriester, vir die priesters tweede in rang, en ook die deurwagters, opdrag gegee om uit die •tempel van die Here al die voorwerpe wat vir Baäl en Asjera, asook al die hemelliggame gemaak is, uit te bring. Hy het dit buite Jerusalem op die terrasse by die Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-El geneem. Hy het weggedoen met die afgodspriesters wat die konings van Juda aangestel het, hulle wat offers verbrand het op die offerhoogtes in die dorpe van Juda en in die omgewing van Jerusalem, en ook van dié wat offers verbrand het vir Baäl, vir die son en maan, die sterrebeelde in die diereriem, en al die ander hemelliggame. Hy het ook die asjera uit die huis van die Here na die Kidrondal buite Jerusalem geneem. Hy het dit in die Kidrondal verbrand, dit fyngestamp tot stof, en die stof weggegooi by die begraafplek van die gewone mense. Hy het die vertrekke van die manlike tempelprostitute wat in die huis van die Here was en waar die vroue afskortings geweef het vir Asjera, afgebreek. Hy het al die priesters uit die dorpe van Juda laat kom en die offerhoogtes waar die priesters offers verbrand het, verontreinig, van Geba tot Berseba. Hy het die offerhoogtes by die stadspoorte afgebreek, dié wat by die ingang na die poort van Josua, die stadsbestuurder, was, aan die linkerkant wanneer 'n mens by die stadspoort ingaan. Die priesters van die offerhoogtes het egter nie na die Here se altaar in Jerusalem opgegaan nie, maar hulle het ongesuurde brood geëet saam met hulle stamgenote. Hy het ook Tofet, wat in die Ben-Hinnomdal was, verontreinig, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Moleg in die vuur sou offer nie. Hy het weggedoen met die perde wat die konings van Juda aan die songod opgedra het, by die ingang na die huis van die Here, by Netan-Meleg, die paleisamptenaar se vertrek, wat in die buitegeboue was. Die strydwaens van die songod het hy verbrand. Die altare wat op die dak van die bovertrek van Agas was, wat die konings van Juda opgerig het, en die altare wat Manasse opgerig het in die twee voorhowe van die huis van die Here, het die koning afgebreek. Hy het dit vinnig daarvandaan verwyder en die stof daarvan in die Kidrondal gegooi. Die offerhoogtes wat oos van Jerusalem was, aan die suidekant van die Berg van Ergernis, het die koning verontreinig, die offerhoogtes wat Salomo, die koning van Israel, opgerig het vir Astarte, die verfoeilike godin van die Sidoniërs, vir Kemos, die verfoeilike god van Moab, en vir Milkom, die afstootlike god van die Ammoniete. Hy het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap en die plekke daarvan met mensbeendere gevul. Selfs die altaar wat in Bet-El was en die offerhoogte wat Jerobeam, seun van Nebat, opgerig het, waarmee hy Israel laat sondig het, selfs daardie altaar en die offerhoogte het hy afgebreek. Hy het die offerhoogte afgebrand, tot stof vergruis en die asjera verbrand. Toe Josia omdraai, sien hy die grafte wat daar op die heuwel was. Hy het toe die beendere uit die grafte laat haal. Hy het dit op die altaar verbrand en dit verontreinig, ooreenkomstig die woord van die Here wat die man van God uitgeroep het, hy wat hierdie gebeure aangekondig het. Josia het gevra: “Watter grafsteen is dit wat ek hier sien?” Die manne van die dorp het hom geantwoord: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie gebeure voorspel het, dit wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” Daarop sê hy: “Laat hom met rus; niemand moet sy beendere versteur nie.” Hulle het sy beendere en die beendere van die profeet wat uit Samaria gekom het, ongeskonde gelaat. Ook al die tempels op die offerhoogtes wat in die dorpe van Samaria was, wat die konings van Israel opgerig het om die Here uit te tart, het Josia verwyder. Hy het daarmee gemaak net soos wat hy in Bet-El gedoen het. Hy het al die priesters van die offerhoogtes wat daar was, op die altare geslag en mensbeendere daarop verbrand. Toe het hy na Jerusalem teruggekeer. Daarna het die koning die hele volk opdrag gegee en gesê: “Vier die Pasga vir die Here julle God, soos dit geskryf staan in hierdie boekrol met die verbond.” Ja, 'n Pasga soos hierdie is nie gevier sedert die tyd van die rigters wat Israel gerig het nie, ook nie gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie. Maar eers in die agttiende regeringsjaar van koning Josia is hierdie Pasga vir die Here in Jerusalem gevier. Ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode en die afgodsbeelde, al die verfoeilike gode wat in die land Juda en in Jerusalem te sien was, het Josia uitgeroei, om uitvoering te gee aan die woorde van die wet wat opgeteken was in die boekrol wat Gilkija, die priester, in die huis van die Here gevind het. 'n Koning soos hy was daar nie voor hom nie – iemand wat na die Here teruggekeer het met sy hele hart en met sy hele wese en met al sy krag, in ooreenstemming met die hele Wet van Moses. En ná hom het daar ook nie iemand soos hy opgestaan nie. En tog het die Here nie afgesien van sy verskriklike brandende toorn wat teen Juda gebrand het oor al die treiterings waarmee Manasse Hom getart het nie. Die Here het gesê: “Ook Juda sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder, soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het, ‘My Naam sal daar wees.’ ” Die verdere geskiedenis van Josia en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? In sy tyd het farao Nego, koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier. Koning Josia het hom tegemoetgetrek, maar Nego het hom by Megiddo doodgemaak toe hy hom teëkom. Sy dienaars het hom dood op 'n strydwa teruggebring van Megiddo af. Hulle het hom na Jerusalem geneem en hom in sy graf neergelê. Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in die plek van sy vader. Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het. Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou – hy kon nie in Jerusalem regeer nie. Nego het ook die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en 'n kikkar goud. Farao Nego het Eljakim, 'n seun van Josia, koning gemaak in die plek van sy vader Josia, en het sy naam verander na Jojakim. Jehoagas het hy geneem en met hom na Egipte gegaan. Jehoagas het daar gesterf. Die silwer en die goud het Jojakim aan die farao gelewer. Hy moes egter die land belas om die geld op bevel van die farao te kon lewer. Volgens elkeen se geskatte waarde, het hy die silwer en die goud by die volk van die land ingevorder om dit aan farao Nego te lewer. Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sebida, dogter van Pedaja, uit Ruma. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het. In sy tyd het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek, en Jojakim was drie jaar lank sy dienaar. Maar toe hy daarna weer teen hom in opstand kom, het die Here roofbendes van die Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen hom gestuur. Die Here het hulle teen Juda gestuur om hom te vernietig, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van sy diensknegte, die profete, gespreek het. Dit het beslis op bevel van die Here met Juda gebeur, om hulle so uit sy teenwoordigheid te verwyder, oor die sondes van Manasse, as gevolg van alles wat hy gedoen het, en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het. Hy het Jerusalem met onskuldige bloed gevul, en die Here was nie bereid om dit te vergewe nie. Die verdere geskiedenis van Jojakim en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Jojakim het by sy voorouers gaan rus, en Jojagin, sy seun, het in sy plek koning geword. Die koning van Egipte het nie meer op veldtogte uit sy land getrek nie, want die koning van Babilonië het van die Spruit van Egipte af tot by die Eufraatrivier alles afgeneem wat aan die koning van Egipte behoort het. Jojagin was agttien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Negusta, dogter van Elnatan, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy vader gedoen het. In daardie tyd het die dienaars van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek teen Jerusalem, en die stad was onder beleg. Toe Nebukadnesar, die koning van Babilonië, by die stad kom terwyl sy dienaars dit beleër het, het Jojagin, die koning van Juda, uitgegaan na die koning van Babilonië, hy en sy moeder, sy dienaars, •hoë amptenare en eunugs. Die koning van Babilonië het hom gevange geneem in die agtste jaar van sy regering. Nebukadnesar het al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koninklike paleis daarvandaan weggevoer. Hy het al die goue voorwerpe wat Salomo, koning van Israel, in die •tempel van die Here gemaak het, verpletter, soos die Here gesê het. Hy het die hele Jerusalem in ballingskap weggevoer, al die hoë amptenare en al die vermoënde mense – tienduisend ballinge – ook al die vakmanne en smede. Niemand behalwe die armes uit die volk van die land het oorgebly nie. Hy het Jojagin in ballingskap weggevoer na Babel. Die moeder van die koning, die vroue van die koning, sy eunugs en die burgers van die land het hy as ballinge van Jerusalem na Babel laat gaan. Al die bekwame manne, seweduisend van hulle, en die vakmanne en smede, duisend van hulle, asook al die krygshelde wat kon oorlog voer, het die koning van Babilonië as ballinge na Babel geneem. Die koning van Babilonië het toe Mattanja, Jojagin se oom, in sy plek koning gemaak, en sy naam verander na Sedekia. Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Jojakim gedoen het. Ja, vanweë die Here se toorn het dit met Jerusalem en Juda gebeur, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid verwerp het. Sedekia het teen die koning van Babilonië in opstand gekom. In die negende jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het •Nebukadnesar, die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom, hy met sy hele leër, en dit beleër. Hy het beleëringswerke reg rondom die stad opgerig, en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, is 'n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne is in die nag met die pad uit, deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. Maar die leër van die Galdeërs het die koning agternagesit en hom op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Sy hele leër het verstrooi geraak, weg van hom af. Hulle het die koning gevange geneem en hom opgeneem na die koning van Babilonië, na Ribla. Hulle het vonnisse oor hom uitgespreek. Die seuns van Sedekia het hulle voor sy oë tereggestel. Sedekia se oë het hy verblind; hy het hom met bronsboeie geboei en na Babel geneem. In die vyfde maand, op die sewende dag van die maand – dit was die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar, die koning van Babilonië – het Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom. Hy het die huis van die Here en die paleis van die koning afgebrand. Al die huise in Jerusalem, ja, elke groot gebou het hy afgebrand. En die stadsmure reg rondom Jerusalem is afgebreek deur die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was. Die res van die bevolking wat nog in die stad oorgebly het, asook die drosters wat na die koning van Babilonië oorgeloop het, die massa mense wat oor was, is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. Maar van die armes in die land het die aanvoerder van die lyfwag agtergelaat as wingerdboere en landbouers. Die bronspilare wat in die huis van die Here was en die verskuifbare staanders, asook die bronssee wat in die huis van die Here was, het die Galdeërs stukkend gebreek, en die brons na Babel weggedra. Die potte, skoppies, messe, skottels, en al die bronsgereedskap waarmee die tempeldiens verrig is, het hulle gevat. Die vuurpanne en offerbakke wat van suiwer goud en suiwer silwer was, het die aanvoerder van die lyfwag gevat. Wat betref die twee pilare, die een see en die verskuifbare staanders wat Salomo vir die huis van die Here gemaak het – die brons van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. Agttien el was die hoogte van elke pilaar. Daar was 'n bronskapiteel bo-op, en die hoogte van die kapiteel was drie el, met vlegwerk en granate reg rondom die kapiteel, alles van brons. Dieselfde geld vir die tweede pilaar met sy vlegwerk. Die aanvoerder van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, Sefanja, die priester tweede in rang, en die drie deurwagters geneem; en uit die stad het hy een paleisamptenaar wat oor die krygsmanne aangestel was, saam met vyf manne wat die koning bygestaan het en wat nog in die stad aangetref kon word, asook die sekretaris, die •hoë amptenaar van die leër wat die oproep vir die volk van die land se krygsdiens hanteer het, en sestig man van die volk van die land wat in die stad te vinde was. Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babilonië in Ribla geneem. Die koning van Babilonië het hulle in Ribla, in die land Hamat, neergevel en doodgemaak. So is Juda van sy grond af in ballingskap weggevoer. Oor die mense wat in die gebied van Juda oorgebly het, dié wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, agtergelaat het, oor hulle het hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, aangestel. Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings, hulle en die manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja in Mispa gegaan. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan, seun van Kareag, Seraja, seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja, die seun van 'n man uit Maäga, hulle en hulle manskappe. Gedalja het vir hulle en vir hulle manskappe 'n eed afgelê en vir hulle gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle.” Maar in die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie, gekom, met tien manne saam met hom. Hulle het Gedalja aangeval, en hy het gesterf, so ook die Judeërs, asook die Galdeërs, wat saam met hom in Mispa was. Toe het die hele volk, klein en groot, gereedgemaak en saam met die aanvoerders van die krygsmag na Egipte gegaan, omdat hulle bang was vir die Galdeërs. In die sewe-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste van die maand, het Ewil-Merodag, die koning van Babilonië, in die jaar toe hy koning geword het, Jojagin, die koning van Juda uit die gevangenis vrygelaat. Hy het vriendelik met hom gepraat en hom 'n sitplek gegee hoër as die sitplekke van die konings wat saam met hom in Babel was, en hy kon sy gevangenisklere uittrek. Hy het altyd, solank hy geleef het, aan die koning se tafel geëet. En sy lewensonderhoud – 'n vaste lewensonderhoud – is deur die koning aan hom gegee, soveel as wat hy elke dag nodig gehad het. Adam, Set, Enos, Kenan, Mahalalel, Jered, Henog, Metusalag, Lameg, Noag, Sem, Gam en Jafet. Jafet se nageslag was Gomer en Magog, Madai, Jawan, Tubal, Meseg en Tiras. Gomer se nageslag was Askenas, Difat en Togarma. Jawan se nageslag was Elisa, Tarsis, die Kittiërs en Rodaners. Gam se nageslag was Kus, Egipte, Put en Kanaän. Kus se nageslag was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabtega. Rama se nageslag was Skeba en Dedan. Kus was die vader van Nimrod. Hy was die een wat begin het om as maghebber op aarde op te tree. Egipte was die voorvader van die Ludeërs, die Anameërs, die Lehabeërs, die Naftugiete, en van die Patrosane en die Kaslugiete, uit wie die Filistyne voortgekom het, en van die Kaftorane. Kanaän het Sidon verwek, sy eersgeborene, en ook Het, en die voorvader van die Jebusiete, die Amoriete, die Girgasiete, die Hewiete, die Eregiete, die Siniete, die Arwadters, die Semariërs en die mense van Hamat. Sem se nageslag was Elam, Assur, Arpagsad, Lud, Aram, Us, Gul, Geter en Meseg. Arpagsad het Selag verwek, en Selag het Heber verwek. Vir Heber is twee seuns gebore. Die een se naam was Peleg, want in sy tyd het die aarde verdeeld geraak, en sy broer se naam was Joktan. Joktan het Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag, Hadoram, Usal, Dikla, Ebal, Abimael, Skeba, Ofir, Gawila en Jobab verwek. Hulle almal was die nageslag van Joktan. Sem, Arpagsad, Selag, Heber, Peleg, Reü, Serug, Nahor, Tera, Abram – dit is Abraham. Abraham se seuns was Isak en Ismael. Hier volg hulle familiegeskiedenis: Nebajot was die eersgeborene van Ismael, daarna Kedar, Adbeël en Mibsam, Misma, Duma, Massa, Gadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Hierdie manne was die nageslag van Ismael. Die nageslag van Ketura, Abraham se byvrou: Sy het Simran in die wêreld gebring, ook Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. Joksan se seuns was Skeba en Dedan, en Midian se seuns was Efa, Efer, Ganog, Abida en Eldaä. Hulle almal was die nageslag van Ketura. Abraham het Isak verwek. Isak se seuns was Esau en Israel. Esau se seuns was Elifas, Reüel, Jeüs, Jalam en Korag. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefi, Gatam, Kenas, Timna en Amalek. Reüel se seuns was Nagat, Serag, Samma en Missa. Seïr se seuns was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan. Lotan se seuns was Gori en Homam. Timna was Lotan se suster. Sobal se seuns was Aljan, Managat, Ebal, Sefi en Onam. Sibon se seuns was Aja en Ana. Ana se seun was Dison. Dison se seuns was Gamran, Esban, Jitran en Keran. Eser se seuns was Bilhan, Saäwan en Jaäkan. Disan se seuns was Us en Aran. Dit is die konings wat in die land Edom regeer het voordat 'n koning oor die Israeliete regeer het: Bela was die seun van Beor, en die naam van sy dorp was Dinhaba. Bela het gesterf, en Jobab het koning geword in sy plek. Jobab was die seun van Serag, uit Bosra. Jobab het gesterf, en Gusam, uit die gebied van die mense van Teman, het koning geword in sy plek. Gusam het gesterf, en Hadad, seun van Bedad, wat Midian in die gebied van Moab verslaan het, het koning geword in sy plek. Die naam van sy dorp was Awit. Hadad het gesterf, en Samla uit Masreka het koning geword in sy plek. Samla het gesterf, en Saul uit Regoboot-Hannahar het koning geword in sy plek. Saul het gesterf, en Baäl-Ganan, seun van Agbor, het koning geword in sy plek. Baäl-Ganan het gesterf, en Hadad het koning geword in sy plek. Die naam van sy dorp was Pai, en sy vrou se naam was Mehetabel, dogter van Matred, dogter van Me-Sahab. Hadad het gesterf. Daarna was daar die volgende stamhoofde in Edom: stamhoof Timna, stamhoof Alja, stamhoof Jetet, stamhoof Oholibama, stamhoof Ela, stamhoof Pinon, stamhoof Kenas, stamhoof Teman, stamhoof Mibsar, stamhoof Magdiël, stamhoof Iram. Dit was die stamhoofde van Edom. Dit was Israel se seuns: Ruben, Simeon, Levi en Juda; Issaskar en Sebulon; Dan, Josef en Benjamin; Naftali, Gad en Aser. Juda se seuns was Er, Onan en Sela; hierdie drie is vir hom gebore uit Bat-Sua, 'n Kanaänitiese vrou. Er, die eersgeborene van Juda, het hom sleg gedra in die oë van die Here, en Hy het hom laat sterf. Tamar, sy skoondogter, het vir hom Peres en Serag in die wêreld gebring. Juda het altesaam vyf seuns gehad. Peres se seuns was Gesron en Gamul; Serag se seuns was Simri, Etan, Heman, Kalkol en Dara – altesaam vyf. Karmi se seun was Agar, deur wie Israel in die ongeluk gestort is, omdat hy ontrou was met die bangoed. Etan se seun was Asarja. Die seuns wat vir Gesron gebore is, was Jeragmeël, Ram en Kaleb. Ram het Amminadab verwek, en Amminadab het Nagson, die stamleier van die nageslag van Juda, verwek. Nagson het Salma verwek, en Salma het Boas verwek. Boas het Obed verwek, en Obed het Isai verwek. Isai het Eliab, sy eersgeborene, verwek, daarna Abinadab, die tweede, Simea, die derde, Netanel, die vierde, Raddai, die vyfde, Osem, die sesde, Dawid, die sewende. Hulle susters was Seruja en Abigajil. Seruja se seuns was Abisai, Joab en Asael, hulle drie. Abigajil het aan Amasa geboorte gegee. Amasa se vader was Jeter, die Ismaeliet. Kaleb, seun van Gesron, het Jeriot verwek by Asuba, sy vrou. Dit was haar seuns: Jeser, Sobab en Ardon. Toe Asuba sterf, het Kaleb vir hom Efrata as vrou geneem, en sy het Gur vir hom in die wêreld gebring. Gur het Uri verwek, en Uri het Besaleël verwek. Later het Gesron met die dogter van Magir, die vader van Gilead, omgang gehad. Hy het haar as vrou geneem toe hy sestig jaar oud was. Sy het vir hom Segub in die wêreld gebring. Segub het Jaïr verwek. Hy het drie-en-twintig dorpe in die Gileadstreek besit. Gesur en Aram het egter Gawwoot-Jaïr van hulle afgeneem, asook Kenat en die omliggende dorpies – sestig dorpe. Hulle almal was die nageslag van Magir, die vader van Gilead. Ná Gesron se dood in Kaleb-Efrata het Abia, Gesron se vrou, vir hom Asgur, die stigter van Tekoa, in die wêreld gebring. Die seuns van Jeragmeël, Gesron se eersgeborene, was Ram, die eersgeborene, Buna, Oren en Osem by Agija. Jeragmeël het nog 'n ander vrou gehad; haar naam was Atara. Sy was die moeder van Onam. Die seuns van Ram, Jeragmeël se eersgeborene, was Maäs, Jamin en Eker. Onam se seuns was Sammai en Jada. Sammai se seuns was Nadab en Abisur. Die naam van Abisur se vrou was Abihajil. Sy het vir hom Agban en Molid in die wêreld gebring. Nadab se seuns was Seled en Appajim. Seled het kinderloos gesterf. Appajim se nageslag was Jisi en Jisi se nageslag was Sesan, en Sesan se nageslag was Aglai. Jada, broer van Sammai, se seuns was Jeter en Jonatan. Jeter het kinderloos gesterf. Jonatan se seuns was Pelet en Sasa. Dit was die nageslag van Jeragmeël. Sesan het nie seuns gehad nie, maar wel dogters. Sesan het 'n Egiptiese slaaf met die naam Jarga gehad. Sesan het toe sy dogter vir sy slaaf Jarga as vrou gegee. Sy het Attai vir hom in die wêreld gebring. Attai het Natan verwek, Natan het Sabad verwek, Sabad het Eflal verwek, Eflal het Obed verwek, Obed het Jehu verwek, Jehu het Asarja verwek, Asarja het Geles verwek, Geles het Elasa verwek, Elasa het Sismai verwek, Sismai het Sallum verwek, Sallum het Jekamja verwek, Jekamja het Elisama verwek. Die nageslag van Kaleb, die broer van Jeragmeël, was Mesa, sy eersgeborene; hy was die stigter van •Sif; die nageslag van Maresa was die stigters van Hebron. Die nageslag van Hebron was Korag, Tappuag, Rekem en Sema. Sema het Ragam verwek, die vader van Jorkoam. Rekem het Sammai verwek. Sammai se seun was Maon, en Maon was die stigter van Bet-Sur. Efa, byvrou van Kaleb, het Garan, Mosa en Gases in die wêreld gebring. Garan het Gases verwek. Die nageslag van Jodai was Regem, Jotam, Gesan, Pelet, Efa en Saäf. Maäga, byvrou van Kaleb, het Seber en Tirgana in die wêreld gebring. Sy het ook vir Saäf, die vader van Madmanna, en vir Sewa, die vader van Magbena en Giba, in die wêreld gebring. Kaleb se dogter was Agsa. Dit was Kaleb se nageslag. Die seuns van Gur, die eersgeborene van Efrata, was Sobal, die stigter van Kirjat-Jearim; Salma, die stigter van Betlehem; Garef, die stigter van Bet-Gader. Die nageslag van Sobal, die stigter van Kirjat-Jearim, was Haroë, die helfte van die mense van Managat, en die volgende familiegroepe van Kirjat-Jearim: die mense uit Jeter, Put, Suma en Misra. Uit hulle het die mense van Sora en Estaol voortgekom. Die nageslag van Salma was die mense van Betlehem, Netofa, Atrot-Bet-Joab, die helfte van die mense van Managat en Sora, en die volgende skrywerfamilies wat in Jabes gewoon het: die mense van Tira, Sema en Suga. Hulle is die Keniete wat van Gamma, die stigter van die Regab-beweging, afstam. Dit was Dawid se seuns wat in Hebron vir hom gebore is: die eersgeborene was Amnon, by Aginoam, die vrou uit Jisreël; die tweede was Daniël, by Abigajil, uit Karmel; die derde was Absalom, die seun van Maäga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur; die vierde was Adonia, die seun van Gaggit; die vyfde was Sefatja, by Abital; en die sesde was Jitream, by sy vrou Egla. Ses seuns is vir hom in Hebron gebore, en hy het sewe jaar en ses maande lank daar as koning geheers. Hy het drie-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hierdie seuns is vir hom in Jerusalem gebore: Sima, Sobab, Natan en Salomo – vier by Batsua, die dogter van Ammiël – dan ook Jibgar, Elisama, Elifelet, Noga, Nefeg, Jafia, Elisama, Eljada en Elifelet – nog nege. Dit was al die seuns van Dawid, afgesien van seuns by byvroue. Tamar was hulle suster. Salomo se seun was Rehabeam; Abia was sy seun; dié se seun was Asa; dié se seun was Josafat; dié se seun was Jehoram; dié se seun was Ahasia; dié se seun was Jehoas; dié se seun was Amasia; dié se seun was Asarja; dié se seun was Jotam; dié se seun was Agas; dié se seun was Hiskia; dié se seun was Manasse; dié se seun was Amon; en dié se seun was Josia. Josia se seuns was Joganan, die eersgeborene, Jojakim, die tweede, Sedekia, die derde, en Sallum, die vierde. Jojakim se nageslag was sy seun Jekonja, en sy seun Sedekia. Die seuns van Jekonja, die gevangene, was sy seun, Sealtiël, asook Malkiram, Pedaja, Senassar, Jekamja, Hosama, Nedabja. Pedaja se seuns was Serubbabel en Simi. Serubbabel se seuns was Mesullam en Gananja. Selomit was hulle suster; dan ook Gasuba, Ohel, Beregja, Gasadja, Jusab-Gesed – 5. Gananja se nageslag was Pelatja, Jesaja, die seuns van Refaja, die seuns van Arnan, die seuns van Obadja, die seuns van Seganja. Die nageslag van Seganja was Semaja. Die seuns van Semaja was Gattus, Jigal, Bariag, Nearja, Safat – 6. Nearja se seuns was Eljoënai, Hiskia, Asrikam – 3. Eljoënai se seuns was Hodauja, Eljasib, Pelaja, Akkub, Joganan, Delaja, Anani – 7. Juda se seuns was Peres, Gesron, Karmi, Gur en Sobal. Sobal se seun Reaja het Jagat verwek, en Jagat het Agumai en Lahad verwek. Hulle is die familiegroepe van die Soraners. Die volgende was die nageslag van die stigter van Etam: Jisreël, Jisma en Jidbas. Hulle suster se naam was Selelponi. Penuel was die stigter van Gedor, en Eser was die stigter van Gusa. Hulle was die seuns van Gur, die eersgeborene van Efrata, die stigter van Betlehem. Asgur, die stigter van Tekoa, het twee vrouens gehad, Gela en Naära. Naära het vir hom Agussam, Gefer, Temni en Agastari in die wêreld gebring. Dit was Naära se seuns. Gela se seuns was Seret, Sogar en Etnan. Kos het Anub verwek, Hassobeba, en die familiegroepe van Agargel, die seun van Harum. Jabes is hoër geag as sy broers; sy moeder het hom die naam Jabes gegee en gesê: “Dit is omdat ek hom met smart in die wêreld gebring het.” Jabes het die God van Israel aangeroep: “As U my tog maar net sal seën, my grondgebied sal vergroot en as u hand by my sal wees! Weerhou onheil van my, sodat ek nie smart ervaar nie.” God het toe laat gebeur wat hy gevra het. Kelub, die broer van Suga, het Megir verwek. Hy was die vader van Eston. Eston het Bet-Rafa verwek, en Paseag en Teginna, die stigter van die dorp Nagas. Hulle is die mense van Rega. Kenas se seuns was Otniël en Seraja, en die seuns van Otniël was Gatat en Meonotai. Hy het Ofra verwek. Seraja het Joab verwek, die stigter van Vakmansdal, want hulle was vakmanne. Kaleb, die seun van Jefunne, se seuns was Iru, Ela en Naäm. Ela se nageslag was Kenas. Jehallelel se seuns was Sif, Sifa, Tireja en Asarel. Die nageslag van Esra was Jeter, Mered, Efer en Jalon. Mered se vrou het swanger geword met Mirjam, daarna met Sammai en met Jisbag, die stigter van Estemoa. Sy Judese vrou het Jered, die stigter van Gedor, Geber, die stigter van Sogo, en Jekutiël, die stigter van Sanoag, in die wêreld gebring. Die ander was die seuns van Bitja, die dogter van die farao, met wie Mered getroud was. Die seuns van Hodija se vrou, die suster van Nagam, was die vader van Keïla, uit Gerem, en Estemoa, uit Maäga. Simon se seuns was Amnon en Rinna, Ben-Ganan en Tilon. Jisi se nageslag was Soget en Ben-Soget. Die nageslag van Sela, Juda se kleinseun, was Er, die stigter van Leka; Lada, die stigter van Maresa, en die familiegroepe, die werkersgilde van fyn linne, van Bet-Asbea; dan ook Jokim en die mense van Koseba, Joas en Saraf wat in Moab vroue gehad het, maar na Betlehem teruggekeer het. Hierdie oorlewerings is oud. Hulle was die pottebakkers en die inwoners van Netaïm en Gedera. In diens van die koning het hulle daar gewoon. Simeon se nageslag was Nemuel, Jamin, Jarib, Serag, Saul. Sallum was sy seun; dié se seun was Mibsam; dié se seun Misma. Misma se nageslag was sy seun Gammuel; dié se seun Sakkur; en dié se seun Simi. Simi het sestien seuns en ses dogters gehad, maar sy broers het nie baie kinders gehad nie. Wat al hulle familiegroepe betref, hulle het nie so vermeerder soos die nageslag van Juda nie. Hulle het gewoon in Berseba, Molada, Gasar-Sual, ook in Bilha, Esem, Tolad, in Betuel, Gorma, Siklag, in Bet-Markabot, Gasar-Susim, Bet-Biri en Saärajim. Dit was hulle dorpe totdat Dawid koning geword het, ook die gehuggies daarvan. Etam, Ajin, Rimmon, Token en Asan, dié vyf dorpe en al die gehuggies wat rondom hierdie dorpe was, tot by Baäl, dit was hulle woonplekke. Hulle eie geslagsregister is: Mesobab, Jamleg, Josa, seun van Amasia; Joël, Jehu, seun van Josibja, seun van Seraja, seun van Asiël; Eljoënai, Jaäkoba, Jesogaja, Asaja, Adiël, Jesimiël, Benaja; Sisa, seun van Sifi, seun van Allon, seun van Jedaja, seun van Simri, seun van Semaja. Hierdie persone wat by name genoem word, was stamleiers in hulle familiegroepe. Hulle families het baie uitgebrei en hulle het getrek na die ingang van Gedor, tot aan die oostekant van die vallei om weiveld vir hulle kleinvee te soek. Hulle het geil en goeie weiveld gekry, en die gebied was wyd oop na albei kante, rustig en vreedsaam. Omdat dit van Gam se mense was wat voorheen daar gewoon het, het hierdie mense, wie se name opgeteken is, in die tyd van Hiskia, die koning van Juda, daar aangekom en die tente en die waterbronne wat daar te vinde was, verwoes. Die mense van Simeon het hulle met die banvloek getref; dit is vandag nog so. Hulle het in hulle plek gaan woon, want daar was weiding vir hulle kleinvee. Sommige van hulle, uit die nageslag van Simeon, het na Seïrberg toe getrek – vyfhonderd man met Pelatja, Nearja, Refaja en Ussiël, die seuns van Jisi, aan die hoof daarvan. Hulle het die res van die Amalekiete, dié wat ontkom het, verslaan en daar gaan woon; dit is vandag nog so. Wat die nageslag van Ruben, die eersgeborene van Israel betref – ja, hy was die eersgeborene, maar toe hy sy vader se slaapplek ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, seun van Israel, gegee en word hy nie volgens die eersgeboortereg in die geslagsregister opgeneem nie. Alhoewel Juda sy broers se meerdere was en iemand as 'n leier uit hom aangewys is, het die eersgeboortereg aan Josef behoort. Die seuns van Ruben dan, Israel se eersgeborene, was Ganog en Pallu, Gesron en Karmi. Joël se nageslag was sy seun Semaja, dié se seun Gog, dié se seun Simi, dié se seun Miga, dié se seun Reaja, dié se seun Baäl en dié se seun Beëra, vir wie Tiglat-Pilneser, die koning van Assirië, in ballingskap weggevoer het. Beëra was 'n stamleier van die stam van Ruben. Sy stamgenote was, volgens elkeen se familiegroep in die register van hulle familiegeskiedenis, Jeïel die hoof, Sagaria en Bela, seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Hulle het gewoon in Aroër en verder, tot by Nebo en Baäl-Meon. Na die oostekant toe het hulle gewoon tot op die rand van die woestyn, in die rigting van die Eufraatrivier, want hulle vee het baie geword in die land Gilead. In Saul se tyd het hulle oorlog gemaak teen die Hagareërs wat deur hulle hand gesneuwel het. Hulle het toe in hulle tente gaan woon in die hele gebied oos van Gilead. Die nageslag van Gad het aangrensend aan hulle gewoon in die land Basan, tot by Salga. Joël was die hoof, en Safam die tweede in rang; dan ook Janai, en Safat in Basan. Hulle stamgenote, volgens hulle families, was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber – sewe. Hierdie manne was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was hoof van hulle familie. Hulle het gewoon in Gilead, in Basan en die omliggende dorpies, en ook nog in al die weivelde van Saron tot aan hulle grense. Hulle almal is in die register opgeneem in die tyd van Jotam, die koning van Juda, en in die tyd van Jerobeam, die koning van Israel. Wat die nageslag van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse betref – onder die onverskrokke manne wat 'n skild en swaard kon dra, 'n boog kon span en ervaring in oorlogvoering gehad het, was daar vier-en-veertigduisend sewehonderd-en-sestig man wat met die leër kon uittrek. Hulle het oorlog gevoer teen die Hagareërs, teen Jetur, Nafis en Nodab. Hulle het hulp ontvang teen hierdie mense, en die Hagareërs en almal wat by hulle was, is in hulle hand gegee, omdat hulle in die geveg na God om hulp geroep het. Hy het hulle smeekbedes verhoor, omdat hulle op Hom vertrou het. Van hulle vee het hulle vyftigduisend kamele weggevoer, tweehonderd-en-vyftigduisend stuks kleinvee en tweeduisend donkies, asook honderdduisend mense. Ja, daar het baie gesneuweldes gelê, omdat die oorlog van God uitgegaan het. Hulle het toe in hulle plek gaan woon tot met die ballingskap. Die nageslag van die halwe stam van Manasse het in die land gewoon, vanaf Basan tot by Baäl-Hermon en Senir, die berg Hermon. Hulle was baie. Die volgende was hulle familiehoofde: Efer, Jisi, Eliël, Asriël, Jeremia, Hodauja en Jagdiël. Die manne was dapper krygers, beroemde manne, hoofde van hulle families. Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorouers en het agter die gode van die volke van die land wat God voor hulle uitgeroei het, aan gehoereer. Toe het die God van Israel die gees van Pul, die koning van Assirië – dit is die gees van Tiglat-Pilneser, die koning van Assirië – aangevuur, en hy het hulle in ballingskap weggevoer, dit is die mense van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse. Hy het hulle na Galag, Gabor, Hara en die rivier van Gosan geneem; dit is vandag nog so. Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari. Kehat se seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Amram se kinders was Aäron, Moses en Mirjam. Aäron se seuns was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Eleasar het Pinehas verwek; Pinehas het Abisua verwek; Abisua het Bukki verwek; Bukki het Ussi verwek; Ussi het Seragja verwek; Seragja het Merajot verwek; Merajot het Amarja verwek; Amarja het Agitub verwek; Agitub het Sadok verwek; Sadok het Agimaäs verwek; Agimaäs het Asarja verwek; Asarja het Joganan verwek; en Joganan het Asarja verwek – dit is hy wat priester was in die •tempel wat Salomo in Jerusalem gebou het – Asarja het Amarja verwek; Amarja het Agitub verwek; Agitub het Sadok verwek; Sadok het Sallum verwek; Sallum het Gilkija verwek; Gilkija het Asarja verwek; Asarja het Seraja verwek; en Seraja het Josadak verwek. Josadak het saamgegaan toe die Here Juda en Jerusalem deur die hand van Nebukadnesar in ballingskap laat wegvoer het. Levi se seuns was Gersom, Kehat en Merari, en dit is die name van Gersom se seuns: Libni en Simi. Kehat se seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Merari se seuns was Magli en Musi. Dit is die familiegroepe van die Leviete volgens hulle voorvaders: Wat Gersom betref, sy nageslag was sy seun Libni, dié se seun Jagat, dié se seun Simma, dié se seun Joag, dié se seun Iddo, dié se seun Serag, en dié se seun Jeatrai. Kehat se nageslag was sy seun Amminadab, dié se seun Korag, dié se seun Assir, dié se seun Elkana, dié se seun Ebjasaf, dié se seun Assir, dié se seun Tagat, dié se seun Uriël, dié se seun Ussia, en dié se seun Saul. Elkana se seuns was Amasai, Agimot, en Elkana. Elkana se seuns was sy seun Sofai, dié se seun Nagat, dié se seun Eliab, dié se seun Jerogam, en dié se seun Elkana. Samuel se seuns was Joël, die eersgeborene, en Abia was die tweede. Merari se nageslag was Magli, dié se seun Libni, dié se seun Simi, dié se seun Ussa, dié se seun Sima, dié se seun Gaggija, en dié se seun Asaja. Dit is die mense wat deur Dawid in beheer geplaas is van die sang in die huis van die Here, vandat dit die rusplek van die ark was. Hulle het met sang diens gedoen voor die heiligdom, die Tent van Ontmoeting, totdat Salomo die huis van die Here in Jerusalem gebou het. Hulle het hulle dienswerk verrig soos vir hulle voorgeskryf is. Hier volg hulle wat dienswerk verrig het, asook hulle nageslagte: Uit die nageslag van Kehat was daar Heman, die tempelsanger, seun van Joël, seun van Samuel, seun van Elkana, seun van Jerogam, seun van Eliël, seun van Toag, seun van Suf, seun van Elkana, seun van Magat, seun van Amasai, seun van Elkana, seun van Joël, seun van Asarja, seun van Sefanja, seun van Tagat, seun van Assir, seun van Ebjasaf, seun van Korag, seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, seun van Israel. Sy stamgenoot Asaf is die een wat aan sy regterkant gestaan het. Asaf was die seun van Beregja, seun van Sima, seun van Migael, seun van Baäseja, seun van Malkija, seun van Etni, seun van Serag, seun van Adaja, seun van Etan, seun van Simma, seun van Simi, seun van Jagat, seun van Gersom, seun van Levi. Die nageslag van Merari, hulle stamgenote, was aan die linkerkant: Etan, seun van Kisi, seun van Abdi, seun van Mallug, seun van Gasabja, seun van Amasia, seun van Gilkija, seun van Amsi, seun van Bani, seun van Semer, seun van Magli, seun van Musi, seun van Merari, seun van Levi. Hulle Levitiese stamgenote is aangestel vir al die dienswerk by die heiligdom, die huis van God, maar Aäron en sy nageslag, wat die offers op die brandofferaltaar en op die altaar vir die reukwerk verbrand het, is aangestel vir al die werk met die allerheiligste voorwerpe, en om vir Israel versoening te doen net soos Moses, die dienskneg van God, beveel het. Dit is Aäron se nageslag: Eleasar was sy seun; dié se seun was Pinehas, dié se seun Abisua, dié se seun Bukki, dié se seun Ussi, dié se seun Seragja, dié se seun Merajot, dié se seun Amarja, dié se seun Agitub, dié se seun Sadok, en dié se seun Agimaäs. Dit is dan hulle woonplekke, volgens kampplekke, op hulle grondgebied: Aan die nageslag van Aäron, dit is die familiegroep van Kehat – die eerste lot het immers op hulle geval – aan hulle is Hebron in die gebied van Juda gegee, asook die omliggende weiveld daarvan. Die dorp se lande en gehuggies is egter aan Kaleb, seun van Jefunne, gegee. Aan die nageslag van Aäron is die volgende asielstede gegee: Hebron, Libna met sy weiveld, Jattir, Estemoa met sy weiveld, Giles met sy weiveld, Debir met sy weiveld, Asan met sy weiveld, Bet-Semes met sy weiveld. Uit die stam van Benjamin was dit Geba met sy weiveld, Alemet met sy weiveld, Anatot met sy weiveld. Onder hulle familiegroepe was dit altesaam dertien dorpe. Aan die nageslag van Kehat, dié wat oorgebly het uit die familiegroep van die stam, is daar deur die lot tien dorpe aangewys uit die stamgebied van die halwe stam, die stam van Manasse. Aan die nageslag van Gersom is daar, volgens hulle familiegroepe, in Basan dertien dorpe aangewys uit die stamgebied van Issaskar, van Aser, van Naftali en van Manasse. Aan die nageslag van Merari is daar, volgens hulle familiegroepe, twaalf dorpe deur die lot aangewys uit die stamgebied van Ruben, van Gad en van Sebulon. Die Israeliete het vir die Leviete die dorpe en hulle weiveld gegee. Hulle het deur die lot hierdie stede wat by die naam genoem word, aangewys uit die stamgebied van Juda se nageslag, uit dié van Simeon se nageslag en uit dié van Benjamin se nageslag. En wat die res van die familiegroepe van Kehat se nageslag betref – die dorpe van hulle grondgebied was uit die stamgebied van Efraim. Hulle het aan hulle die volgende asielstede gegee: Sigem met sy weiveld in die heuwelland van Efraim, Geser met sy weiveld, Jokmeam met sy weiveld, Bet-Goron met sy weiveld, Ajalon met sy weiveld, Gat-Rimmon met sy weiveld. Uit die halwe stam van Manasse se grondgebied was dit Aner met sy weiveld, en Bileam met sy weiveld aan die oorblywende familiegroep van die nageslag van Kehat. Aan die nageslag van Gersom is Golan in Basan, met sy weiveld, en Astarot met sy weiveld gegee uit die familiegroep van die halwe stam van Manasse se grondgebied. Uit die stamgebied van Issaskar was dit Kedes met sy weiveld, Daberat met sy weiveld, Ramot met sy weiveld, en Anem met sy weiveld. Uit die stamgebied van Aser was dit Masal met sy weiveld, Abdon met sy weiveld, Gukok met sy weiveld, en Regob met sy weiveld. Uit die stamgebied van Naftali was dit Kedes in Galilea met sy weiveld, Gammon met sy weiveld, en Kirjatajim met sy weiveld. Aan die nageslag van Merari wat oorgebly het, het hulle uit die stamgebied van Sebulon gegee Rimmono met sy weiveld, en Tabor met sy weiveld. Oorkant die Jordaan by Jerigo, aan die oostekant van die Jordaan, uit die stamgebied van Ruben, was dit Beser, in die woestyn, met sy weiveld, Jasa met sy weiveld, Kedemot met sy weiveld, en Mefaät met sy weiveld. Uit die stamgebied van Gad was dit Ramot in Gilead, met sy weiveld, Maganajim met sy weiveld, Gesbon met sy weiveld, en Jaser met sy weiveld. Issaskar se seuns was Tola, Pua, Jasub en Simron – 4. Tola se seuns was Ussi, Refaja, Jeriël, Jagmai, Jibsam en Samuel. Hulle was hoofde van hulle families vir die Tola-groep, dapper krygers, volgens hulle familiegeskiedenis. Hulle getal in die tyd van Dawid was 22 600. Ussi se nageslag was Jisragja, en Jisragja se seuns was Migael, Obadja, Joël en Jissija. Hulle vyf was almal familiehoofde. As deel van hulle, van hulle families, was daar, volgens hulle familiegeskiedenis, vir gevegte 'n troepemag van 36 000, want hulle het baie vroue en kinders gehad. Hulle stamgenote, al die familiegroepe van Issaskar, was altesaam 87 000 dapper krygers, volgens hulle geslagsregister. Benjamin se seuns was Bela, Beger en Jediael – 3. Bela se seuns was Esbon, Ussi, Ussiël, Jerimot en Iri, 5 familiehoofde, dapper krygers. Volgens hulle geslagsregister was hulle 22 034 man. Beger se seuns was Semira, Joas, Eliëser, Eljoënai, Omri, Jeremot, Abia, Anatot en Alemet. Hulle almal was Beger se seuns. Volgens die geslagsregister van hulle familiegeskiedenis was hulle familiehoofde, dapper krygers – 20 200. Jediael se nageslag was Bilhan, en Bilhan se seuns was Jeüs, Benjamin, Ehud, Kenaäna, Setan, Tarsis en Agisagar. Hulle almal was Jediael se nageslag; volgens die familiehoofde was daar 17 200 dapper krygers wat as 'n leër oorlog toe kon gaan. Suppim en Guppim was die nageslag van Ir, en Gussim die nageslag van Ager. Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser, Sallum en die nageslag van Bilha. Manasse se seuns was Asriël, wat deur sy Aramese byvrou in die wêreld gebring is; sy het ook Magir, die vader van Gilead, in die wêreld gebring. Magir het vir Guppim en Suppim vroue geneem. Sy suster se naam was Maäga. Die tweede seun se naam was Selofgad, maar Selofgad het net dogters gehad. Magir se vrou, Maäga, het 'n seun in die wêreld gebring, en sy het hom Peres genoem. Sy broer se naam was Seres, en sy seuns was Ulam en Rekem. Ulam se nageslag was Bedan. Dit was dan die nageslag van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse. Moleget, Gilead se suster, het Ishod, Abiëser en Magla in die wêreld gebring. Semida se seuns was Agjan, Segem, Likgi en Aniam. Efraim se nageslag was Sutelag, dié se seun Bered, dié se seun Tagat, dié se seun Elada, dié se seun Tagat, dié se seun Sabad en dié se seun Sutelag. Wat Eser en Elad betref: Die mense van Gat wat in die land gebore is, het hulle doodgemaak omdat hulle afgetrek het om die mense se vee te vat. Hulle vader Efraim het lank oor hulle getreur, en sy broers het hom kom troos. Hy het met sy vrou omgang gehad, sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Beria genoem, want dit het gebeur tydens 'n ramp in sy huis. Sy dogter was Seëra. Sy het Bet-Goron-Onder en Bet-Goron-Bo gebou, en ook Ussen-Seëra. Refag was sy ander seun; dié se seun was Resef, dié se seun Telag, dié se seun Tagan, dié se seun Ladan, dié se seun Ammihud, dié se seun Elisama, dié se seun Nun en dié se seun Josua. Hulle grondgebied en woonplekke was Bet-El, met sy omliggende dorpies, na die ooste toe Naäran, en na die weste toe Geser, met hulle omliggende dorpies, asook Sigem, met sy omliggende dorpies, tot by Aja, met sy omliggende dorpies. Onder beheer van Manasse se nageslag was Bet-San met sy omliggende dorpies, Taänag met sy omliggende dorpies, Megiddo met sy omliggende dorpies, en Dor met sy omliggende dorpies. Dit is waar die nageslag van Josef, seun van Israel, gewoon het. Aser se seuns was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en Serag was hulle suster. Beria se seuns was Geber en Malkiël; hy was die vader van Birsajit. Geber het Jaflet, Semer en Gotam, en hulle suster, Sua, verwek. Jaflet se seuns was Pasag, Bimhal en Aswat. Dit was Jaflet se seuns. Semer se seuns was Agi, Roga, Gubba en Aram. Sy broer Helem se nageslag was Sofag, Jimna, Seles en Amal. Sofag se seuns was Suag, Garnefer, Sual, Beri, Jimra, Beser, Hod, Samma, Silsa, Jitran en Beëra. Jeter se seuns was Jefunne, Pispa en Ara. Ulla se seuns was Arag, Ganniël en Risja. Hulle almal was Aser se nageslag: familiehoofde, uitgelese, dapper krygers, hoofde van leiers. Volgens hulle geslagsregister, met die oog op die leër in oorlogstyd, was hulle getal 26 000 man. Benjamin het Bela, sy eersgeborene, verwek, daarna Asbel, die tweede, Agrag, die derde, Noga, die vierde, Rafa, die vyfde. Bela het die volgende seuns gehad: Addar, Gera, Abihud, Abisua, Naäman, Agoag, Gera, Sefufan en Guram. Die volgende was die nageslag van Egud – hulle was familiehoofde van die inwoners van Geba, en hulle het hulle na Managat weggevoer in ballingskap – Naäman, Agija en Gera. Gera is die een wat hulle weggevoer het, en hy het Ussa en Agigud verwek. Sagarajim het kinders verwek in die gebied van Moab nadat hy sy vroue Gusim en Baära weggestuur het. Hy het by Godes, sy vrou, Jobab, Sibja, Mesa en Malkam verwek, ook Jeüs, Sakeja en Mirma. Dit was sy seuns, familiehoofde. By Gusim het hy Agitub en Elpaäl verwek. Elpaäl se seuns was Eber, Misam en Semed – hy is die een wat Ono en Lod, met sy omliggende dorpies, gebou het. Beria en Sema was ook sy seuns. Hulle was die familiehoofde van die inwoners van Ajalon. Dit is hulle wat die inwoners van Gat laat vlug het. Agjo, Sasak, Jeremot, Sebadja, Arad, Eder, Migael, Jispa en Joga was die nageslag van Beria. Sebadja, Mesullam, Giski, Geber, Jismerai, Jislia en Jobab was die nageslag van Elpaäl. Jakim, Sigri, Sabdi, Eliënai, Silletai, Eliël, Adaja, Beraja en Simrat was die nageslag van Simi. Jispan, Eber, Eliël, Abdon, Sigri, Ganan, Gananja, Elam, Antotija, Jifdeja en Penuel was die nageslag van Sasak. Samserai, Segarja, Atalia, Jaäresja, Elia en Sigri was die nageslag van Jerogam. Hulle was familiehoofde, hoofde volgens hulle familiegeskiedenis. Dit is hulle wat in Jerusalem gewoon het. In Gibeon het die stigter van Gibeon gewoon, en sy vrou se naam was Maäga. Sy seun, die eersgeborene, was Abdon; verder Sur, Kis, Baäl, Nadab, Gedor, Agjo en Seker. Miklot het Sima verwek. Ook hulle het in Jerusalem regoor hulle stamgenote gewoon, saam met hulle stamgenote. Ner het Kis verwek, Kis het Saul verwek, en Saul het Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl verwek. Jonatan se seun was Meribbaäl, en Meribbaäl het Miga verwek. Miga se seuns was Piton, Melek, Tarea en Agas. Agas het Jehoadda verwek, en Jehoadda het Alemet, Asmawet en Simri verwek. Simri het Mosa verwek. Mosa het Bina verwek; sy seun was Rafa, dié se seun Elasa, en dié se seun Asel. Asel het ses seuns gehad, en dit was hulle name: Asrikam, Bogeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Hulle almal was Asel se seuns. Sy broer Esek se seuns was Ulam, sy eersgeborene, Jeüs, die tweede, en Elifelet, die derde. Ulam se seuns was manne, dapper krygers wat 'n boog kon span. Hulle het baie kinders en kleinkinders gehad, honderd-en-vyftig. Hulle almal was van die nageslag van Benjamin. Die hele Israel is in geslagsregisters opgeskryf. Kyk, hulle is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Juda is na Babilonië weggevoer oor hulle ontrou. Die eerste inwoners wat weer op hulle erfgrond in hulle stede was, was Israeliete, priesters, Leviete en tempeldienaars. In Jerusalem het daar uit die nageslag van Juda, Benjamin, Efraim en Manasse die volgende gewoon: Utai, seun van Ammihud, seun van Omri, seun van Imri, seun van Bani, uit die nageslag van Peres, seun van Juda; van die mense van Silo was dit Asaja, die eersgeborene, en sy seuns; uit die nageslag van Serag was dit Jeüel. Hulle stamgenote was 690; uit die nageslag van Benjamin was dit Sallu, seun van Mesullam, seun van Hodauja, seun van Senua, asook Jibneja, seun van Jerogam, Ela, seun van Ussi, seun van Migri, en Mesullam, seun van Sefatja, seun van Reüel, seun van Jibnija. Hulle stamgenote, volgens hulle familiegeskiedenis, was 956. Al hierdie manne was familiehoofde in hulle families. Van die priesters was daar: Jedaja, Jojarib, Jagin en Asarja, seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, die leier in die huis van God; dan Adaja, seun van Jerogam, seun van Pasgur, seun van Malkija, en Masai, seun van Adiël, seun van Jagsera, seun van Mesullam, seun van Mesillemot, seun van Immer. Hulle stamgenote, die hoofde van hulle families, was 1 760 – bekwame manne vir die dienswerk in die huis van God. Van die Leviete was daar Semaja, seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja uit die nageslag van Merari; asook Bakbakkar, Geres, Galal, Mattanja, seun van Miga, seun van Sigri, seun van Asaf; en Obadja, seun van Semaja, seun van Galal, seun van Jedoetoen, en Beregja, seun van Asa, seun van Elkana, wat in die gehuggies van die mense van Netofa gewoon het. Die poortwagte was Sallum, Akkub, Talmon, Agiman en hulle stamgenote, met Sallum as die hoof. Tot op hede is hulle by die koningspoort aan die oostekant. Hulle was die poortwagte by die kampplekke van die Leviete. Sallum, seun van Kore, seun van Ebjasaf, seun van Korag, en sy stamgenote aan vaderskant, die Koragiete, moes as drumpelwagte toesig hou oor die dienswerk by die tent. Hulle voorvaders moes as bewakers van die ingang toesig hou oor die kamp van die Here. Pinehas, seun van Eleasar, 'n leier, was voorheen oor hulle. Die Here was met hom. Sagaria, seun van Meselemja, was poortwag by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Hulle almal, 212, was as uitgesoektes poortwagte by die drumpels. Hulle is by hulle dorpies in hulle geslagsregister opgeteken. In hulle geval het Dawid en die siener Samuel hulle in hulle vertrouensposisie aangestel. Hulle en hulle nageslag was as wagte in beheer van die poorte van die huis van die Here, van die tenthuis. Vir elkeen van die vier windrigtings was daar poortwagte – aan die oostekant, die westekant, die noordekant en die suidekant. Hulle stamgenote in hulle dorpies moes van tyd tot tyd saam met hulle vir sewe dae inkom. Omdat hulle in 'n vertrouensposisie was, die vier vernaamste poortwagte, was hulle Leviete. Hulle moes toesig hou oor die vertrekke, en die skatte in die huis van God. Reg rondom die huis van God moes hulle oornag, want hulle moes beskikbaar wees vir wagdiens, en hulle was in beheer van die oopsluit elke oggend. Sommige van hulle moes toesig hou oor die gebruiksvoorwerpe vir die dienswerk; want getel moes hulle dit inbring en getel moes hulle dit weer wegneem. Sommige van hulle is aangestel oor die gebruiksvoorwerpe, oor al die gereedskap van die heiligdom en oor die gesifte meel, die wyn, die olyfolie, die wierook en die speserye. Sommige van die priesters se nageslag moes salf meng met die speserye. Mattitja, een van die Leviete – hy was die eersgeborene van Sallum, die Koragiet – moes toesig hou oor die bakwerk. Uit die nageslag van Kehat was van hulle stamgenote in beheer van die brood, gerangskik in rye, om dit elke Sabbat gereed te kry. Hierdie manne was die sangers, familiehoofde van die Leviete wat vrygestel was van werk in die vertrekke, omdat hulle dag en nag beskikbaar moes wees vir diens. Dit was die familiehoofde van die Leviete; volgens hulle familiegeskiedenis was hulle hoofde. Dit is hulle wat in Jerusalem gewoon het. In Gibeon het Jeïel, die stigter van Gibeon, gewoon. Sy vrou se naam was Maäga. Sy eersgebore seun was Abdon, daarna Sur, Kis, Baäl, Ner, Nadab, Gedor, Agjo, Sagaria en Miklot. Miklot het Simam verwek. Ook hulle het regoor hulle stamgenote in Jerusalem gewoon, saam met hulle stamgenote. Ner het Kis verwek, en Kis het Saul verwek. Saul het Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl verwek. Jonatan se seun was Meribbaäl en Meribbaäl het Miga verwek. Miga se seuns was Piton, Melek, Tagrea. Agas het Jara verwek. Jara het Alemet, Asmawet en Simri verwek. Simri het Mosa verwek. Mosa het Bina verwek, en Refaja was sy seun, dié se seun was Elasa en dié se seun Asel. Asel het ses seuns gehad, en dit was hulle name: Asrikam, Bogeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Hulle was Asel se seuns. Intussen het die Filistyne teen Israel geveg en die manne van Israel het voor die Filistyne uit gevlug; die gesneuweldes het op die berg van Gilboa gelê. Die Filistyne het op Saul en sy seuns se hakke gebly, en die Filistyne het Jonatan, Abinadab en Malkisua, Saul se seuns, neergevel. Die geveg het verhewig teen Saul, en die boogskutters het op hom afgekom. Hy het gebewe van angs vir die boogskutters. Saul sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en martel my.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was angsbevange. Toe vat Saul sy swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val ook hy in sy swaard en sterf. So het Saul en sy drie seuns gesterf. Sy hele gesin het saam gesterf. Toe al die manne van Israel wat in die vallei was, sien dat hulle gevlug het, en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle hulle dorpe verlaat en gevlug. Die Filistyne het toe gekom en daar gaan woon. Die volgende dag, toe die Filistyne kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns waar hulle op die berg van Gilboa lê. Hulle het hom kaalgestroop en sy kop en sy wapens gevat. Hulle het boodskappers in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus aan hulle afgode en die volk te bring. Daarna het hulle sy wapens in die tempel van hulle god neergesit, en sy kopbeen het hulle in die tempel van Dagon vasgeslaan. Toe almal by Jabes in Gilead alles hoor wat die Filistyne Saul aangedoen het, het al die bekwame manne gereedgemaak en Saul en sy seuns se lyke opgetel en hulle na Jabes geneem. Hulle het hulle beendere onder die terebintboom by Jabes begrawe en sewe dae lank gevas. Saul het gesterf vanweë sy troubreuk wat hy teen die Here gepleeg het, aangesien hy die woord van die Here nie nagekom het nie, en omdat hy boonop by die gees van 'n dooie navraag gedoen en dié geraadpleeg het. Hy het nie die Here geraadpleeg nie, en Hy het hom laat sterf. Hy het die koningskap laat oorgaan na Dawid, seun van Isai. Die hele Israel het by Dawid in Hebron byeengekom en gesê: “Kyk, ons is u bloedfamilie. Reeds vroeër, selfs toe Saul koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here u God het vir u gesê, ‘Jy sal 'n herder wees vir my volk Israel, ja, jy sal 'n leier wees oor my volk Israel.’ ” Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het Dawid met hulle in Hebron 'n verbond gesluit voor die Here; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel, ooreenkomstig die woord van die Here, by monde van Samuel. Dawid en die hele Israel het toe na Jerusalem gegaan, dit is Jebus, waar die Jebusiete die inwoners van die gebied was. Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie!” En tog het Dawid die Sionsvesting, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. Dawid het gesê: “Wie ook al eerste 'n Jebusiet neervel, word hoof en •aanvoerder!” Joab, seun van Seruja, het eerste opgegaan, en hy het hoof geword. Dawid het in die vesting gaan woon; daarom het hulle dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het die stad rondom opgebou, van die terrasse af en reg rondom, terwyl Joab die res van die stad herstel het. Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, Heerser oor alle magte, was met hom. Hier volg die hoofde van Dawid se helde wat hom tydens sy koningskap kragtig bygestaan het, deurdat hulle, saam met die hele Israel, hom koning gemaak het oor Israel ooreenkomstig die woord van die Here. Dit is dan die getal helde wat Dawid gehad het: Jasobam, seun van Gakmoni, was hoof van die dertig. Hy het in een veldtog sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai. Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, uit Agoag. Hy was een van die drie helde. Hy was by Dawid in Pas-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg byeen was. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, het hulle stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hulle het die Filistyne verslaan, en die Here het 'n groot oorwinning bewerk. 'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan na Dawid by die rots, by die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. Dawid was vol heimwee, en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” Die drie het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie, en het dit vir die Here uitgegiet en gesê: “Mag my God my daarvan weerhou dat ek dit ooit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink wat hulle lewens gewaag het? Ja, deur hulle lewens te waag, het hulle dit gebring.” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drie helde gedoen het. Abisai, Joab se broer, hy was die hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai. Hy het vir hom naam gemaak onder die drie. By die drietal het hy dubbele eer ontvang, en hy was vir hulle 'n aanvoerder; maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Benaja, seun van Jojada, was 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n man wat vyf el lank was, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies soos die dwarsbalk van 'n weefraam in sy hand gehad. Benaja het met 'n stok na hom afgegaan. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het naam gemaak onder die drie helde. Hy was ongetwyfeld meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag. Die dapper krygers was: Asael, broer van Joab; Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem; Sammot uit Haror; Geles uit Pelon; Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa; Abiëser uit Anatot; Sibbegai uit Gusa; Ilai uit Agoag; Marai uit Netofa; Geled, seun van Baäna, uit Netofa; Ittai, seun van Ribai, uit Gibea van die Benjaminiete; Benaja uit Piraton; Gurai uit Nagale-Gaäs; Abiël uit Bet-Araba; Asmawet uit Bagarum; Eljagba uit Saälbon; die seuns van Hasem uit Gison; Jonatan, seun van Sage, uit Harar; Agiam, seun van Sagar, uit Harar; Elifal, seun van Ur; Gefer uit Megera; Agija uit Pelon; Gesro uit Karmel; Naärai, seun van Esbai; Joël die broer van Natan; Mibgar, seun van Hagri; Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, seun van Seruja; Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter; Urija die Hetiet; Sabad, seun van Aglai; Adina, seun van Sisa, 'n Rubeniet, hoof van die Rubeniete, met dertig by hom; Ganan, seun van Maäga; Josafat uit Meten; Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam, uit Aroër; Jediael, seun van Simri, en sy broer Joga uit Tis; Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma die Moabiet; Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba. Dit was die manne wat na Dawid gekom het in Siklag toe hy nog uitgesluit was uit die teenwoordigheid van Saul, seun van Kis. Hulle was onder die helde wat bystand verleen het in die oorlog. Gewapen met boë, kon hulle regs- of linkshandig gooi met 'n slingervel, of skiet met pyl en boog. Hulle was van die stamgenote van Saul uit Benjamin: Die hoof was Agiëser; dan Joas, seun van Semaä, uit Gibea; Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet; Beraka en Jehu uit Anatot; Jismaja uit Gibeon, 'n held onder die dertig en in beheer van die dertig; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera; Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif; Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam, die Koragiete; Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam, uit Gedor. Van die mense van Gad het oorgeloop na Dawid, na die bergvesting in die woestyn, dapper manne, krygsmanne gereed vir die geveg, toegerus met grootskild en steekspies. Hulle gesigsuitdrukkings was soos dié van leeus, en soos gaselle op die berge, so vinnig was hulle. Eser was die hoof, Obadja die tweede, Eliab die derde, Mismanna die vierde, Jeremia die vyfde, Attai die sesde, Eliël die sewende, Joganan die agtste, Elsabad die negende, Jeremia die tiende, Magbannai die elfde. Hierdie manne was uit die nageslag van Gad, leërhoofde; net een, die geringste, was die gelyke van 'n honderd, en die belangrikste, die gelyke van 'n duisend. Dit was hierdie manne wat die Jordaan oorgesteek het in die eerste maand, terwyl dit vol was tot oor al sy walle, en water al die valleie aan die ooste- en westekant versper het. Toe daar van die nageslag van Benjamin en Juda na die bergvesting, na Dawid, gekom het, het Dawid uitgegaan, voor hulle gaan staan en vir hulle gesê: “As julle in vrede na my gekom het om my te help, is ek dit met julle van harte eens. Maar as julle gekom het om my aan my teenstanders te verraai, terwyl daar nie geweld aan my handpalms kleef nie, mag die God van ons voorouers dit sien en straf.” Toe het 'n gees van Amasai, die hoof van die dertig, besit geneem, en hy het gesê: “Ons is vir u, Dawid, en saam met u, seun van Isai! Vrede, vrede vir u, en vrede vir die wat u help, want u God help u!” Dawid het hulle aanvaar en hulle as hoofde van die troepe aangestel. Uit Manasse het mense na Dawid oorgeloop toe hy saam met die Filistyne gegaan het vir die geveg teen Saul. Hulle het die Filistyne egter nie gehelp nie, want die Filistynse regeerders het Dawid ná oorlegpleging weggestuur en gesê: “Met ons koppe sal hy oorloop na sy heer Saul.” Toe hy na Siklag gegaan het, het mense uit Manasse na hom oorgeloop. Dit was Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, hoofde oor duisende wat by Manasse hoort. Dit is hulle wat Dawid ondersteun het teen die rowerbende, want almal van hulle was dapper krygers, en hulle het •aanvoerders in die leër geword. Ja, dag ná dag het mense na Dawid gekom om hom te help, totdat dit 'n groot leër was, inderdaad 'n geweldige leër. Dit is die getalle van die manne wat ná 'n hoofdelike telling slaggereed was vir oorlog. Hulle het na Dawid in Hebron gekom om die koningskap van Saul op hom oor te dra, ooreenkomstig die bevel van die Here: Die nageslag van Juda wat grootskild en steekspies dra – 6 800, gewapen vir oorlog; uit die nageslag van Simeon, dapper krygers van die leër – 7 100; uit die nageslag van Levi – 4 600; Jojada, die leier van die Aärongroep, en saam met hom 3 700; Sadok, 'n jong man, 'n dapper kryger, en sy familie, met 22 aanvoerders; uit die nageslag van Benjamin, stamgenote van Saul – 3 000, en tot op daardie stadium het die meeste van hulle die verpligtinge teenoor die huis van Saul nagekom; uit die nageslag van Efraim – 20 800, dapper krygers, manne met aansien in hulle families; uit die halwe stam van Manasse – 18 000, wat by die naam aangewys is om Dawid te kom koning maak; uit die nageslag van Issaskar, kenners met insig in die tye, sodat hulle weet wat Israel moet doen – hulle hoofde was 200, met al hulle stamgenote onder hulle bevel; uit Sebulon, dié wat gereed was om op 'n veldtog te vertrek en met onverdeelde harte hulp te verskaf, in gevegslinies opgestel met al die oorlogswapens – 50 000; uit Naftali, 1 000 aanvoerders, en saam met hulle 37 000 met grootskilde en vegspiese; uit die mense van Dan, in gevegslinies opgestel – 28 600; uit Aser, dié wat gereed was om op 'n veldtog te vertrek, om in gevegslinies opgestel te word – 40 000; van oorkant die Jordaan, uit die mense van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse, met al die wapens van 'n leërmag – 120 000. Hulle was almal krygsmanne wat gereed was om hulp te verleen met die gevegslinies. Met onverdeelde harte het hulle na Hebron gekom om Dawid koning te maak oor die hele Israel. Ook die hele res van Israel was een van hart om Dawid koning te maak. Hulle was drie dae lank daar saam met Dawid, besig om te eet en te drink, want hulle volksgenote het vir hulle voorsien. Ook dié wat naby hulle was, maar tot so ver as Issaskar, Sebulon en Naftali, het kos gebring op donkies, kamele, muile en beeste: eetgoed, meel, blokke saamgeperste droë vye, blokke saamgeperste rosyne, wyn, olyfolie, en beeste en kleinvee in oorvloed; want daar was vreugde in Israel. Nadat Dawid met die •aanvoerders van duisend en van honderd, met elke leier, beraadslaag het, sê hy vir die hele geloofsgemeenskap van Israel: “As julle dit goedvind, en as dit van die Here ons God af kom, kom ons versprei die nuus en stuur die berig deur na ons volksgenote wat nog oor is in al die gebiede van Israel, en saam met hulle ook na die priesters en Leviete in die dorpe waar hulle weiregte het, sodat hulle hier by ons kan byeenkom. Kom ons bring dan die ark van ons God na ons toe, want in Saul se tyd het ons nie daarvoor gesorg nie.” Die hele geloofsgemeenskap het ingestem om dit so te doen, want die saak was reg in die oë van die hele volk. Daarop het Dawid die hele Israel, van Sigor in Egipte af tot by Lebo-Hamat, byeen laat kom om die ark van God uit Kirjat-Jearim te bring. Dawid en die hele Israel het hierna opgetrek na Baäla, na Kirjat-Jearim wat in Juda geleë is, om van daar af die ark van God, die Here wat troon op die gerubs waaroor die Naam uitgeroep is, te bring. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa van Abinadab se huis af vervoer, en Ussa en Agjo het die wa begelei. Dawid en die hele Israel was in algehele oorgawe uitbundig voor God, met liedere, harpe, liere, tamboeryne, simbale en trompette. Toe hulle by die dorsvloer van Kidon kom, het Ussa sy hand uitgesteek om die ark vas te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand en Hy het hom getref, omdat hy sy hand na die ark uitgesteek het. Hy het net daar voor God gesterf. Dawid was ontsteld dat die Here Ussa uitmekaar geslaan het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is die naam tot vandag toe. Dawid het daardie dag bang geword vir God en gesê: “Hoe kan ek die ark van God na my toe bring?” Dawid het die ark toe nie na hom, na die •Stad van Dawid, laat afdraai nie, maar dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom, 'n man uit Gat. Die ark van God het drie maande lank by die huis van Obed-Edom, in sy huis, gebly, en die Here het die huishouding van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën. Huram, die koning van Tirus, het gesante na Dawid gestuur, asook sederhout, klipmesselaars en skrynwerkers om vir hom 'n paleis te bou. Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het, want sy koningskap het hoë aansien geniet om sy volk Israel se onthalwe. Dawid het in Jerusalem nog vroue geneem, en hy het nog seuns en dogters verwek. Dit is die name van die kinders wat in Jerusalem vir hom gebore is: Sammua, Sobab, Natan en Salomo, Jibgar, Elisua en Elpelet, Noga, Nefeg en Jafia, Elisama, Beëljada en Elifelet. Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning gesalf is oor die hele Israel, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek; maar Dawid het daarvan te hore gekom en teen hulle uitgetrek. Die Filistyne het gekom en in die vallei van Refaïm stelling ingeneem. Dawid het by God raad gesoek: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my hand gee?” Die Here het vir hom gesê: “Trek op! Ek gee hulle in jou hand.” Hulle het toe opgetrek na Baäl-Perasim, en daar het Dawid hulle verslaan. Dawid het gesê: “God het deur my hand deur my vyande gebreek soos water deurbreek.” Daarom noem hulle daardie plek Baäl-Perasim. Die Filistyne het hulle gode daar agtergelaat. Dawid het die opdrag gegee, en dit is verbrand. Daarna het die Filistyne weer in die vallei stelling ingeneem. Dawid het God weer geraadpleeg, en God het vir hom gesê: “Moenie agter hulle aan optrek nie. Draai van hulle af weg en oorval hulle voor die balsempopuliere. Sodra jy die geluid van 'n opmars in die toppe van die balsempopuliere hoor, ruk op vir die geveg; want dan het God voor jou uit getrek om die leër van die Filistyne te verslaan.” Dawid het gemaak soos God hom beveel het, en hulle het die leër van die Filistyne verslaan, van Gibeon tot by Geser. Dawid se roem het uitgekring na al die lande, en die Here het by al die nasies 'n vrees vir hom laat posvat. Dawid het vir hom huise opgerig in die Stad van Dawid. Hy het vir die ark van God 'n plek gereedgemaak en 'n tent daarvoor opgeslaan. Toe sê Dawid: “Niemand mag die ark van God dra nie, behalwe die Leviete. Want dit is hulle wat deur die Here uitgekies is om die ark van die Here te dra en Hom vir altyd te dien.” Dawid het toe die hele Israel in Jerusalem byeen laat kom om die ark van die Here boontoe te neem na die plek wat hy daarvoor gereedgemaak het. Hy het die nageslag van Aäron en die Leviete byeengebring. Vir die nageslag van Kehat was Uriël die leier; sy stamgenote was 120 man. Vir die nageslag van Merari was Asaja die leier; sy stamgenote was 220 man. Vir die nageslag van Gersom was Joël die leier; sy stamgenote was 130 man. Vir die nageslag van Elisafan was Semaja die leier; sy stamgenote was 200 man. Vir die nageslag van Hebron was Eliël die leier; sy stamgenote was 80 man. Vir die nageslag van Ussiël was Amminadab die leier; sy stamgenote was 112 man. Dawid het Sadok en Abjatar, die priesters, asook die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab ontbied en vir hulle gesê: “Julle is die familiehoofde van die Leviete. Heilig julleself, julle en julle stamgenote, en neem die ark van die Here, die God van Israel, boontoe, na die plek wat ek daarvoor gereedgemaak het, want die eerste keer was dit nie julle wat dit gedoen het nie. Die Here ons God het ons uitmekaar geslaan, omdat ons Hom nie geraadpleeg het soos dit hoort nie.” Die priesters en die Leviete het hulleself toe geheilig om die ark van die Here, die God van Israel, boontoe te neem. Die Leviete het toe die ark van God met die draaghoute op hulle skouers gedra, soos wat Moses in ooreenstemming met die woord van die Here opdrag gegee het. Dawid het die leiers van die Leviete aangesê om hulle stamgenote, die sangers, te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale, en om, terwyl hulle speel, hulle stemme in vreugde te laat opklink. Die Leviete het toe Heman, seun van Joël, laat aantree, en uit sy stamgenote Asaf, seun van Beregja, asook Etan, seun van Kusaja, uit die nageslag van Merari, hulle stamgenote; en saam met hulle was hulle stamgenote wat tweede in rang was, die poortwagte Sagaria, Ben, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, en Jeïel. Die sangers Heman, Asaf en Etan moes die kopersimbale bespeel. Sagaria, Asiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja moes op harpe “Jong Vroue” speel, en Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel, en Asasja, op liere, “Die Agtste”, om leiding te gee. Kenanja was die leier van die Leviete by die drawerk. Hy was die toesighouer by die drawerk, want hy het dit verstaan. Beregja en Elkana was deurwagte vir die ark. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het voor die ark van God op trompette geblaas. Obed-Edom en Jegija was ook deurwagte voor die ark. Dit was Dawid, die oudstes van Israel, en die •aanvoerders van duisend wat gegaan het om die verbondsark van die Here met vreugde uit die huis van Obed-Edom te gaan haal. Terwyl God die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, gehelp het, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer. Dawid was geklee in 'n mantel van fyn linne, so ook al die Leviete wat die ark gedra het, die sangers, en Kenanja, die hoofopsigter by die drawerk, en die sangers. Dawid het ook 'n efod van linne gedra. Die hele Israel was besig om die verbondsark van die Here met uitroepe en die geluid van 'n •ramshoring, trompette en simbale boontoe te neem, terwyl hulle op harpe en liere speel. Maar toe die verbondsark van die Here by die Stad van Dawid aankom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid sien huppel en dans. Sy het hom in haar hart verag. Hulle het die ark van God ingeneem en dit neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle •brandoffers en •maaltydoffers voor God gebring. Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk in die Naam van die Here geseën. Hy het aan elke Israeliet, man en vrou, 'n ronde brood, 'n dadelkoek en 'n rosynekoek uitgedeel. Hy het van die Leviete wat voor die ark van die Here moes diens doen, aangestel om die Here, die God van Israel, te huldig, te dank en te loof. Asaf was aan die hoof, en tweede in rang was Sagaria. Daarna volg Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel, met harpe en liere. Asaf het die simbale laat galm, terwyl die priesters, Benaja en Jagasiël, deurentyd met die trompette voor die verbondsark van God was. Op daardie dag, juis toe, het Dawid die eerste keer vir Asaf en sy stamgenote aangestel om die Here soos volg te prys: Prys die Here, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend! Sing vir Hom, besing Hom; praat met oorgawe oor al sy wonderwerke. Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees. Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op. Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond, nageslag van Israel, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy is die Here ons God; oor die hele wêreld geld sy oordele. Onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het vir duisend geslagte, wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste reël, aan Israel as 'n ewige verbond, met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.” Toe hulle nog min in getal was, baie min, en •vreemdelinge in die land was, het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk. Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys: “Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.” Sing vir die Here, o ganse aarde! Verkondig sy verlossing van dag tot dag! Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en blydskap is in sy heiligdom. Gee erkenning aan die Here, familiegroepe van volke! Gee erkenning aan die Here vir sy heerlikheid en krag! Gee erkenning aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Laat die hemel bly wees, en die aarde juig. Mense onder die nasies sê: “Die Here regeer!” Die see en alles daarin moet dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel, dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel. Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Julle moet sê: “Red ons, o God wat ons verlos, en bring ons bymekaar! Ja, red ons van die nasies, sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom.” Die Here, die God van Israel, moet geprys word, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen!” en “Loof die Here! ” Dawid het Asaf en sy stamgenote daar voor die verbondsark van die Here laat bly om deurentyd voor die ark diens te doen volgens die vereistes van elke dag. Obed-Edom en sy agt-en-sestig stamgenote, asook Obed-Edom, seun van Jedoetoen, en Gosa was daar as deurwagte. Die priester Sadok en sy medepriesters het hy voor die •tabernakel van die Here op die •offerhoogte wat in Gibeon is, agtergelaat om deurentyd, soggens en saans, vir die Here brandoffers op die brandofferaltaar te bring, volgens alles wat voorgeskryf is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het. Saam met hulle was Heman en Jedoetoen en die res van die uitgesoektes wat by die naam aangewys is om die Here te prys met die woorde: “Vir ewig duur sy troue liefde!” By hulle, by Heman en Jedoetoen, was daar trompette en simbale vir die musikante, en instrumente vir die begeleiding van godsdienstige liedere. Die seuns van Jedoetoen was by die poort. Daarna het die hele volk, elkeen, teruggegaan na sy huis. Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te seën. Toe Dawid in sy huis gevestig was, het hy vir die profeet Natan gesê: “Kyk, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here staan onder tentdoeke.” Daarop het Natan vir Dawid gesê: “Alles wat u in gedagte het, doen dit, want God is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van God het tot Natan gekom: “ Gaan sê vir Dawid, my dienskneg, ‘So sê die Here: “Dit is nie jy wat vir my 'n huis sal bou om in te woon nie. Ek het, vanaf die dag dat Ek Israel laat optrek het uit Egipte tot vandag toe, mos nie in 'n huis gewoon nie. Ek was van die een tent na die ander, van die een woonplek na die ander. Het Ek ooit, oral waar Ek in die hele Israel rondgetrek het, met een van die rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die tyd af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Ek sal al jou vyande verneder. Ek maak aan jou bekend dat die Here 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir My 'n huis sal bou, en Ek sal sy troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie. Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.” ’ ” Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, Here God; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, o God, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms; ja, U het my vorentoe gesien as 'n dinastie, Here God. Maar wat kan Dawid verder vir U sê oor die eerbewys aan u dienskneg? U ken self u dienskneg. Here, ter wille van u dienskneg, en volgens u wil het U hierdie hele groot saak uitgevoer, om so al die grootse dade bekend te maak. Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk Israel – die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir U naam te maak deur grootse en wonderlike dade, om nasies te verdryf voor u volk wat U uit Egipte vrygekoop het? U het u volk Israel vir U as 'n volk bestem vir altyd, en U, Here, het hulle God geword. Here, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, laat dit altyd vasstaan. Doen wat U gesê het, sodat dit sal vasstaan, en u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, is God vir Israel,’ en sodat die huis van u dienskneg Dawid bestendig sal wees voor U. Want U, my God, het aan u dienskneg geopenbaar dat U vir hom 'n huis sal bou. Daarom het u dienskneg dit moontlik gevind om voor U te bid. En nou, Here, U is God; U het hierdie goeie woord oor u dienaar uitgespreek. U het nou besluit om die huis van u dienskneg te seën sodat dit vir altyd voor U sal wees. Omdat U, Here, dit geseën het, is dit vir altyd geseën.” 'n Tyd daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle verneder. Hy het Gat en die omliggende dorpies van die Filistyne afgeneem. Hy het die Moabiete verslaan. Die Moabiete het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Dawid het ook Hadad-Eser, die koning van Soba, by Hamat verslaan toe dié gegaan het om sy mag aan die Eufraatrivier te vestig. Dawid het van hom 'n duisend trekperde, seweduisend van die strydwabemanning en twintigduisend voetsoldate gevange geneem. Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgekap; hy het net honderd van die trekperde laat oorbly. Toe die Arameërs van Damaskus vir Hadad-Eser, die koning van Soba, te hulp kom, het Dawid twee-en-twintigduisend man uit Aram neergevel. Dawid het by die Arameërs van Damaskus garnisoene geplaas. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het. Dawid het die rondeskilde van goud wat die dienaars van Hadad-Eser by hulle gehad het, gevat en dit na Jerusalem gebring. Uit Tibgat en Kun, stede van Hadad-Eser, het Dawid besonder baie brons gevat. Daarmee het Salomo die bronswaskom, die pilare en die bronsgereedskap gemaak. Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser, die koning van Soba, verslaan het, het hy sy seun Hadoram na koning Dawid gestuur om te vra hoe dit met hom gaan en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak en hom verslaan het, want Hadad-Eser was altyd in gevegte gewikkel met Toï. Hadoram het voorwerpe van silwer, goud en brons saamgebring. Ook dit het koning Dawid aan die Here gewy, saam met die silwer en goud wat hy by al die nasies gevat het – by die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete. Abisai, seun van Seruja, het die Edomiete in die Soutvallei verslaan, agttienduisend van hulle. Hy het in Edom wagposte geplaas en al die Edomiete het onderdane van Dawid geword. Die Here het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy gegaan het. Dawid het oor die hele Israel regeer, en hy het vir sy hele volk gedoen wat reg en billik is. Joab, seun van Seruja, was in bevel van die leër, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. Sadok, seun van Agitub, en Abimeleg, seun van Abjatar, was priesters; Sausa was sekretaris, en Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die Kreti en Pleti. Dawid se seuns was die belangrikste persone aan die koning se sy. 'n Tyd daarna het Nagas, die koning van die Ammoniete, gesterf, en sy seun het in sy plek koning geword. Dawid sê toe: “Ek wil welwillendheid betoon teenoor Ganun, seun van Nagas, omdat sy vader teenoor my welwillendheid betoon het.” Dawid stuur toe boodskappers om met hom meegevoel te betuig oor sy vader. Toe Dawid se amptenare in die land van die Ammoniete kom om met Ganun meegevoel te betuig, sê die •hoë amptenare van die Ammoniete vir Ganun: “Eer Dawid u vader, volgens u mening, omdat hy mense na u stuur wat meegevoel betuig? Is dit nie met die doel om inligting in te win en omver te werp nie? Sy amptenare het net na u gekom om die land te verken. ” Ganun het toe Dawid se amptenare gevat en hulle kaal geskeer. Hy het hulle klere in die helfte afgesny, tot by die sitvlak, en hulle toe weggestuur. Nadat hulle vertrek het en daar aan Dawid berig gebring is oor die manne, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was verskriklik verneder. Die koning het gesê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde gegroei het, en kom dan terug.” Toe die Ammoniete besef dat hulle hulleself veragtelik gemaak het by Dawid, het Ganun en die Ammoniete 'n duisend kikkar silwer gestuur om vir hulle strydwaens en spanne perde te huur in Aram-Naharajim, en by die Arameërs van Maäga en Soba. Hulle het vir hulle twee-en-dertigduisend strydwaens, asook die koning van Maäga en sy manskappe, gehuur. Hulle het gekom en voor Medeba kamp opgeslaan. Ook die Ammoniete het uit hulle dorpe byeengekom en gekom om te veg. Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met 'n hele leër heldhaftiges uitgestuur. Die Ammoniete het uitgetrek en gevegslinies by die ingang na die stad opgestel. Die konings wat gekom het, was egter op hulle eie in die veld. Toe Joab sien dat daar gevegslinies voor en agter hom is, het hy 'n keuse gemaak uit al die keurtroepe in Israel en hulle teenoor die Arameërs opgestel. Die res van die manskappe het hy geplaas onder bevel van Abisai, sy broer, en hulle teenoor die Ammoniete opgestel. Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou help. Wees dapper en laat ons ons inspan ter wille van ons mense en die dorpe van ons God. En die Here – wat goed is in sy oë, sal Hy doen.” Toe het Joab en die manskappe by hom nader gegaan vir die geveg teen die Arameërs, maar hulle het voor hom uit gevlug. Die Ammoniete het gesien dat die Arameërs vlug. Toe het ook hulle voor sy broer Abisai uit gevlug en die stad binnegegaan. Joab het toe maar na Jerusalem gegaan. Toe die Arameërs sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle boodskappers uitgestuur en die Arameërs wat anderkant die Rivier was, laat optrek. Sofak, die bevelvoerder van die leër van Hadad-Eser, was op die voorpunt. Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel byeengebring, die Jordaan oorgesteek, by die Arameërs aangekom, en gevegslinies teen hulle opgestel. Dawid het die linies teenoor die Arameërs opgestel vir die geveg, en hulle het teen hom geveg. Maar die Arameërs het op die vlug geslaan voor Israel. Dawid het van die Arameërs seweduisend trekperde en veertigduisend van die voetsoldate doodgemaak. Sofak, die •aanvoerder van die leër, het hy ook doodgemaak. Die dienaars van Hadad-Eser het gesien dat hulle deur Israel verslaan is, en het met Dawid vrede gesluit en sy dienaars geword. Die Arameërs was nie gewillig om weer die Ammoniete te help nie. Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Joab die leërmag gelei en die land van die Ammoniete verwoes. Hy het die land binnegedring en Rabba beleër. Dawid het egter in Jerusalem agtergebly. Joab het Rabba verslaan en dit afgebreek, en Dawid het hulle koning se kroon van sy kop afgehaal en gevind dat die gewig daarvan 'n kikkar goud was, en dat daar edelstene in was. Dit is op Dawid se kop geplaas. Die buit van die stad wat hy weggevoer het, was besonder groot, en die mense wat daarin was, het hy uitgebring, en die stad met klipsae, ysterpikke en ysterbyle opgesny. So het Dawid telkens met al die dorpe van die Ammoniete gemaak. Toe het Dawid en al die manskappe na Jerusalem teruggekeer. 'n Tyd daarna het daar in Geser 'n geveg uitgebreek met die Filistyne. Dit was toe dat Sibbegai uit Gusa vir Sippai, uit die nageslag van Rafa, verslaan het; en so is die Filistyne op hulle knieë gedwing. Daar was nog 'n geveg met die Filistyne. Elganan, seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Goliat, uit Gat, verslaan. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam. Toe was daar weer 'n geveg in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet – vier-en-twintig altesaam. Ook hy het van Rafa afgestam. Hy het Israel uitgetart, maar Jonatan, seun van Simea, die broer van Dawid, het hom verslaan. Dit was afstammelinge van Rafa in Gat, maar hulle het gesneuwel aan die hand van Dawid en sy dienaars. Satan het teen Israel opgestaan en Dawid opgesteek om Israel te tel. Dawid sê toe vir Joab en die •aanvoerders van die manskappe: “Gaan tel die Israeliete van Berseba tot by Dan, en bring vir my die uitslag, sodat ek kan weet wat hulle getal is.” Maar Joab het geantwoord: “Mag die Here by sy manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is! My heer die koning, is hulle nie almal my heer se onderdane nie? Waarom versoek my heer dit? Waarom moet dit vir Israel 'n skuldlas word?” Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab, en Joab het uitgegaan, deur die hele Israel getrek en weer in Jerusalem aangekom. Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan Dawid gegee. Die hele Israel was eenmiljoen eenhonderdduisend man, gewapen met swaarde, en Juda was vierhonderd-en-sewentigduisend man, gewapen met swaarde. Van Levi en Benjamin het hy nie 'n opname gemaak saam met hulle nie, want die koning se opdrag het by Joab weersin gewek. Hierdie saak was verkeerd in die oë van God, en Hy het Israel getref. Toe sê Dawid vir God: “Ek het ernstig gesondig met hierdie daad wat ek gedoen het. Skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.” Die Here het vir Gad, die siener van Dawid, gesê: “Gaan sê vir Dawid, ‘So sê die Here: “Drie moontlikhede lê Ek aan jou voor; kies vir jou een daarvan, sodat Ek dit aan jou kan doen.” ’ ” Toe Gad by Dawid kom, het hy vir hom gesê: “So sê die Here: ‘Kies vir jou: óf drie jaar lank hongersnood, óf drie maande lank weggevoer deur jou teenstanders terwyl die swaard van jou vyande jou inhaal, óf drie dae lank die swaard van die Here en pessiekte in die land, terwyl die •engel van die Here deur die hele gebied van Israel verwoesting saai.’ Kyk dan nou watter antwoord ek moet terugneem na Hom wat my gestuur het.” Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud. Mag ek tog in die hand van die Here val, want groot is sy ontferming. Maar mag ek nie in die hande van mense val nie.” Die Here het toe 'n pessiekte in Israel beskik, en sewentigduisend man uit Israel het geval. God het 'n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes, maar toe hy besig was om verwoesting te saai, het die Here dit gesien, en Hy was jammer oor die ramp. Hy sê toe vir die engel, wat besig was om verwoesting te saai: “Dit is nou genoeg, trek jou hand terug!” Die engel van die Here het toe by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan. Dawid het opgekyk en die engel van die Here tussen die aarde en die hemel sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, uitgestrek oor Jerusalem. Dawid en die oudstes het toe, bedek met rouklere, neergeval met hulle gesigte teen die grond. Dawid het vir God gesê: “Is dit nie ek wat 'n telling onder die manskappe gelas het nie? Ek is die een wat gesondig het en heeltemal verkeerd opgetree het. Maar hierdie kleinvee, wat het hulle gedoen? Here my God, laat u hand asseblief teen my en my familie wees, maar nie teen u volk gerig as 'n plaag nie.” Die engel van die Here het toe vir Gad gesê om vir Dawid te sê dat hy, Dawid, moet opgaan om vir die Here 'n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet. Dawid het toe, op grond van die woord van Gad wat hy in die Naam van die Here gespreek het, opgegaan. Toe Ornan omdraai, sien hy die engel. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip, maar Ornan het aangehou koring dors. Dawid het tot by Ornan gekom, en toe Ornan goed kyk, sien hy dit is Dawid. Hy het van die dorsvloer afgekom en voor Dawid diep neergebuig met sy gesig teen die grond. Daarop sê Dawid vir Ornan: “Gee asseblief vir my die plek met die dorsvloer; ek wil 'n altaar vir die Here daarop bou. Teen die volle bedrag geld moet jy dit vir my gee, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” Ornan het Dawid geantwoord: “Neem dit vir u. My heer die koning kan daarmee doen wat goed is in u oë. Kyk, ek gee die beeste vir die •brandoffers, die dorssleë vir die hout en die koring vir die •graanoffer. Dit alles gee ek.” Maar koning Dawid het Ornan geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen die volle bedrag geld. Ek kan immers nie iets wat aan jou behoort, vir die Here neem nie, of 'n brandoffer bring sonder uitgawes nie.” Dawid het Ornan seshonderd sikkel goud gegee vir die plek. Toe het Dawid daar 'n altaar vir die Here gebou, en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Hy het die Here aangeroep, en die Here het hom geantwoord met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar. Die Here het die engel opdrag gegee, en hy het sy swaard weer in sy skede teruggesit. In daardie tyd, toe Dawid sien dat die Here hom antwoord op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het hy daar geoffer. Die •tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het en die brandofferaltaar was in dié tyd op die •offerhoogte by Gibeon, maar Dawid kon nie voor daardie altaar verskyn om God te raadpleeg nie, want vrees vir die swaard van die engel van die Here het hom oorval. Dawid sê toe: “Dit moet die huis van die Here God wees, en hierdie die altaar vir die •brandoffers van Israel.” Dawid het toe mense aangesê om die •vreemdelinge wat in die land Israel was, bymekaar te maak. Hy het hulle as klipkappers in diens geneem om gekapte klip gereed te kry vir die bou van die huis van God. Groot hoeveelhede yster vir die spykers van die poortdeure en vir die balkpenne, is deur Dawid voorsien, en soveel brons dat dit nie geweeg kon word nie, ook sederhout wat nie bereken kon word nie. Die mense van Sidon en Tirus het immers 'n groot hoeveelheid sederhout aan Dawid gelewer. Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou moet word, moet buitengewoon groot wees en in al die lande roem en eer verwerf; ek wil daarvoor voorbereidings tref.” Dawid het toe voor sy dood talle voorbereidings getref. Hy het sy seun Salomo ontbied en hom beveel om 'n huis vir die Here, die God van Israel, te bou. Dawid het vir Salomo gesê: “My seun, ek het my voorgeneem om vir die Naam van die Here my God 'n huis te bou; maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê, ‘Jy het te veel bloed vergiet en groot oorloë gevoer. Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, omdat jy so baie bloed voor My op die aarde vergiet het. Kyk, 'n seun sal vir jou gebore word. Hy sal 'n rustige man wees, en Ek sal hom rus gee van al sy vyande aan alle kante. Ja, Salomo sal sy naam wees, en Ek sal vrede en kalmte aan Israel skenk in sy dae. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou; Hy sal vir My 'n seun wees, en Ek sal vir hom 'n vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bestendig.’ “ Daarom, my seun, mag die Here met jou wees, en mag jy sukses behaal en die huis van die Here jou God bou soos Hy aangaande jou gesê het. Mag die Here tog net vir jou insig en begrip gee om, wanneer Hy jou oor Israel aanstel, die wet van die Here jou God na te kom; slegs dan sal jy sukses behaal – as jy die vaste voorskrifte en bepalings wat die Here vir Moses aangaande Israel beveel het, noukeurig nakom. Wees dapper en sterk! Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie! Kyk, deur my selfverloëning kon ek vir die huis van die Here honderdduisend kikkar goud en 'n miljoen kikkar silwer voorsien, en brons en yster wat nie geweeg kan word nie, omdat dit so baie is. Hout en klip voorsien ek ook, maar jy moet nog daarby voeg. By jou is daar baie werksmense: klipkappers, vakmanne in klip- en houtwerk. Daar is manne wat oor alle vaardigheid in enige soort werk beskik in verband met goud, silwer, brons en yster – 'n onberekenbare hoeveelheid. Maak gereed en doen die werk; en mag die Here met jou wees!” Dawid het al die leiers van Israel soos volg opdrag gegee om sy seun Salomo te help: “Is die Here julle God nie met julle nie? En het Hy julle nie aan alle kante rus gegee nie? Ja, Hy het die inwoners van die land in my hand gegee, en die land is aan die Here en aan sy volk onderwerp. Rig julle nou met hart en siel daarop om die Here julle God te soek. Maak gereed en bou die heiligdom van die Here God, sodat julle die verbondsark van die Here en die heilige voorwerpe van God kan bring na die huis wat vir die Naam van die Here gebou word.” Toe Dawid oud was, ná 'n vol lewe, het hy sy seun Salomo koning gemaak oor Israel. Hy het al die leiers van Israel, die priesters en die Leviete byeengebring. Die Leviete van dertig jaar en ouer is getel. Hulle getal – dit is van die manne wat kop vir kop getel is – was agt-en-dertigduisend. “Van hierdie groep,” het Dawid gesê, “moet vier-en-twintigduisend toesig hou oor die werk aan die huis van die Here; sesduisend is opsieners en regters; vierduisend is poortwagte; en vierduisend moet die Here loof met instrumente wat ek gemaak het om Hom mee te loof.” Dawid het hulle toe in afdelings ingedeel volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari. Onder die afdeling van Gerson was dit Ladan en Simi. Ladan se seuns was Jegiël, die hoof, Setam en Joël – 3. Simi se seuns was Selomit, Gasiël en Haran – 3. Hulle was die familiehoofde van Ladan. Simi se seuns was Jagat, Sisa, Jeüs, en Beria. Dit was die seuns van Simi – 4. Jagat was die familiehoof en Sisa die tweede, maar Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie, en hulle het as 'n familie, as een diensgroep, opgetree. Kehat se seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël – vier. Amram se seuns was Aäron en Moses. Aäron is afgesonder, sodat hy die besonder heilige voorwerpe kon heilig, voor die Here offers kon verbrand, Hom kon dien, en altyd in sy Naam kon seën. Dit geld vir hom en sy nageslag vir altyd. En Moses, die man van God, se nageslag is by die stam van Levi gereken. Moses se seuns was Gersom en Eliëser. Van Gersom se nageslag was Sebuel die familiehoof. Van Eliëser se nageslag was Regabja die familiehoof. Eliëser het nie ander seuns gehad nie, maar die seuns van Regabja was besonder talryk. Van Jishar se nageslag was Selomit die familiehoof. Van Hebron se seuns was Jerija die familiehoof, Amarja die tweede, Jagasiël die derde, en Jekamam die vierde. Van Ussiël se seuns was Miga die familiehoof en Jissija die tweede. Merari se seuns was Magli en Musi. Magli se seuns was Eleasar en Kis. Toe Eleasar gesterf het, het hy nie seuns gehad nie, net dogters. Die seuns van Kis, hulle stamgenote, het toe met hulle getrou. Musi se seuns was Magli, Eder en Jeremot – drie. Dit was die seuns van Levi volgens hulle families met die familiehoofde, soos wat hulle kop vir kop ingeskryf is met die getal name – hulle wat die dienswerk vir die huis van die Here moes doen, van twintig jaar en ouer. Dawid het immers gesê: “Die Here, die God van Israel, het vir sy volk rus gegee, en Hy vertoef vir altyd in Jerusalem;” en ook wat die Leviete betref: “Die tabernakel en al die toebehore vir sy diens moet nie meer gedra word nie.” Ja, in aansluiting by Dawid se laaste opdragte, moes hulle, wanneer die Leviete getel word, twintig jaar en ouer wees. Hulle plek was immers langs die nageslag van Aäron vir dienswerk in die huis van die Here, om te sorg vir die voorhowe en vertrekke, die reiniging van elke heilige voorwerp, as dienswerk in die huis van God, en vir die brood gerangskik in rye, die gesifte meel vir die •graanoffer, die ongesuurde platbrode, die bakplaat, die kniewerk, en vir alle inhoudsmate en afmetings; en om elke oggend gereed te staan om die Here te dank en te loof, sowel as in die aand; en om al die brandoffers vir die Here te bring op die Sabbatte, op die nuwemaansfeeste en op die vaste aantal feestye, telkens voor die Here, volgens die voorskrif daaroor. So het hulle dan hulle verpligting by die Tent van Ontmoeting en by die heiligdom nagekom, asook hulle verpligting teenoor die nageslag van Aäron, hulle stamgenote, as dienswerk by die huis van die Here. Die nageslag van Aäron het hulle eie afdelings gehad. Die seuns van Aäron was Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar. Nadab en Abihu is voor hulle vader oorlede en het nie seuns gehad nie. Eleasar en Itamar het toe as priesters opgetree. Dawid en Sadok, uit die nageslag van Eleasar, en Agimeleg, uit die nageslag van Itamar, het die nageslag van Aäron volgens hulle verantwoordelikhede in groepe ingedeel vir hulle dienswerk. Toe dit blyk dat die nageslag van Eleasar, volgens die getal manne, meer was as die nageslag van Itamar, is hulle soos volg ingedeel: vir die nageslag van Eleasar, sestien hoofde vir die families, vir die nageslag van Itamar, agt hoofde vir die families. Hulle is groep vir groep deur loting ingedeel, want onder die nageslag van Eleasar, sowel as die nageslag van Itamar, was daar persone wat hoë ampte beklee het in die heiligdom en voor God. Semaja, seun van Netanel, die sekretaris onder die Leviete, het hulle opgeskryf in die teenwoordigheid van die koning en die •hoë amptenare en van Sadok, die priester, en Agimeleg, seun van Abjatar, asook die familiehoofde van die priesters en die Leviete: een familie deur die lot aangewys vir Eleasar en een aangewys vir Itamar. Die eerste lot het op Jojarib geval, die tweede op Jedaja, die derde op Garim, die vierde op Seorim, die vyfde op Malkija, die sesde op Mijamin, die sewende op Hakkos, die agtste op Abia, die negende op Jesua, die tiende op Seganja, die elfde op Eljasib, die twaalfde op Jakim, die dertiende op Guppa, die veertiende op Jesebab, die vyftiende op Bilga, die sestiende op Immer, die sewentiende op Gesir, die agttiende op Hapisses, die negentiende op Petagja, die twintigste op Esegiël, die een-en-twintigste op Jagin, die twee-en-twintigste op Gamul, die drie-en-twintigste op Delaja, die vier-en-twintigste op Maäsja. Hierdie groep se verantwoordelikheid, in ooreenstemming met hulle dienswerk, was om in die huis van die Here in te gaan volgens die voorskrif aan hulle, by monde van Aäron, hulle voorvader, soos die Here, die God van Israel, hom beveel het. Wat die oorblywende Leviete betref: Die nageslag van Amram was Subael, en die nageslag van Subael was Jegdeja. Wat Regabja betref, die nageslag van Regabja was Jissija, die hoof. Wat die groep van Jishar betref, was dit Selomit, en die nageslag van Selomit was Jagat. Die nageslag van Hebron was Jerija, Amarja die tweede, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde. Die nageslag van Ussiël was Miga, en die nageslag van Miga was Samir; Miga se broer was Jissija, en die nageslag van Jissija was Sagaria. Die nageslag van Merari was Magli, Musi, en die nageslag van sy seun Jaäsija. Die nageslag van Merari deur sy seun Jaäsija was Soham, Sakkur en Ibri. Vir Magli was daar Eleasar, maar hy het nie seuns gehad nie; ook Kis, en die nageslag van Kis was Jeragmeël. Die nageslag van Musi was Magli, Eder en Jerimot. Dit was die nageslag van die Leviete volgens hulle families. Ook hulle het die lot gewerp, op dieselfde wyse as hulle stamgenote, die nageslag van Aäron, in die teenwoordigheid van koning Dawid, Sadok, Agimeleg en die familiehoofde van die priesters en Leviete. Die familie van die familiehoof is op dieselfde wyse behandel as dié van die jongste broer. Dawid en die leëraanvoerders het die nageslag van Asaf, Heman en Jedoetoen afgesonder vir dienswerk – hulle wat geesdriftig moes speel op liere, harpe en simbale. Die lys van die manne wat die taak moes uitvoer, in ooreenstemming met hulle dienswerk, was soos volg: Vir die nageslag van Asaf was dit Sakkur, Josef, Netanja en Asarela, die seuns van Asaf, onder leiding van Asaf, wat op aanwysing van die koning geesdriftig moes speel. Vir Jedoetoen was dit Jedoetoen se seuns Gedalja, Seri, Jesaja, Gasabja en Mattitja – ses, onder leiding van hulle vader Jedoetoen, wat op die lier geesdriftig moes speel by die dank en loof van die Here. Vir Heman was dit Heman se seuns Bukkija, Mattanja, Ussiël, Sebuel, Jerimot, Gananja, Ganani, Eliata, Giddalti, Romamti-Eser, Josbekasa, Malloti, Hotir en Magasiot. Hulle almal was seuns van Heman, die siener van die koning in goddelike sake; hulle het aan hom aansien gegee. God het vir Heman veertien seuns en drie dogters gegee. Al hierdie manne het onder leiding van hulle pa's, dit is Asaf, Jedoetoen en Heman, opgetree by die sang in die huis van die Here, met simbale, harpe en liere vir die diens in die huis van God, op aanwysing van die koning. Hulle getal, saam met hulle stamgenote wat opgelei was in sang vir die Here, elkeen wat bedrewe was, was 288. Hulle het die lot gewerp met die oog op diensbeurte; op dieselfde wyse vir jonk en oud, vir kenner en leerling. Die eerste lot vir Asaf het geval op Josef; die tweede op Gedalja, hy en sy broers en seuns – 12; die derde op Sakkur, sy seuns en sy broers – 12; die vierde op Jisri, sy seuns en sy broers – 12; die vyfde op Netanja, sy seuns en sy broers – 12; die sesde op Bukkija, sy seuns en sy broers – 12; die sewende op Jesarela, sy seuns en sy broers – 12; die agtste op Jesaja, sy seuns en sy broers – 12; die negende op Mattanja, sy seuns en sy broers – 12; die tiende op Simi, sy seuns en sy broers – 12; die elfde op Asarel, sy seuns en sy broers – 12; die twaalfde op Gasabja, sy seuns en sy broers – 12; die dertiende op Subael, sy seuns en sy broers – 12; die veertiende op Mattitja, sy seuns en sy broers – 12; die vyftiende op Jeremot, sy seuns en sy broers – 12; die sestiende op Gananja, sy seuns en sy broers – 12; die sewentiende op Josbekasa, sy seuns en sy broers – 12; die agttiende op Ganani, sy seuns en sy broers – 12; die negentiende op Malloti, sy seuns en sy broers – 12; die twintigste op Eliata, sy seuns en sy broers – 12; die een-en-twintigste op Hotir, sy seuns en sy broers – 12; die twee-en-twintigste op Giddalti, sy seuns en sy broers – 12; die drie-en-twintigste op Magasiot, sy seuns en sy broers – 12; en die vier-en-twintigste op Romamti-Eser, sy seuns en sy broers – 12. Wat die afdelings van die poortwagte betref: Vir die Koragiete was dit Meselemja, seun van Kore, uit die nageslag van Asaf. Meselemja het die volgende seuns gehad: Sagaria die eersgeborene, Jediael die tweede, Sebadja die derde, Jatniël die vierde, Elam die vyfde, Joganan die sesde en Eljehoënai die sewende. Obed-Edom het die volgende seuns gehad: Semaja die eersgeborene, Josabad die tweede, Joag die derde, Sagar die vierde, Netanel die vyfde, Ammiël die sesde, Issaskar die sewende en Peülletai die agtste, want God het hom geseën. Vir Semaja, sy seun, is die volgende seuns gebore – heersers van hulle familie omdat hulle dapper krygers was. Semaja se seuns was Otni, Refael, Obed en Elsabad. Sy familielede Elihu en Semagja was onverskrokke. Al hierdie manne het van Obed-Edom afgestam. Hulle, hulle seuns en hulle familielede was bekwaam, met die vermoë om die taak te verrig – die 62 van Obed-Edom. Meselemja het onverskrokke seuns en familielede gehad – 18 van hulle. Gosa, uit die nageslag van Merari, het ook seuns gehad: Simri was die hoof, al was hy nie die eersgeborene nie. Sy vader het hom egter as hoof aangestel. Gilkija was die tweede, Tebalja die derde en Sagaria die vierde. Gosa se seuns en familielede was altesaam 13. Hierdie manne, die afdelings van die poortwagte, het op dieselfde wyse as hulle familielede en ooreenkomstig die getal manne, die verantwoordelikheid gehad om in die huis van die Here diens te doen. Vir elke poort het hulle die lot gewerp volgens hulle families; op dieselfde wyse vir jonk en oud: Aan die oostekant het die lot geval op Selemja. Sagaria, sy seun, was 'n verstandige raadgewer. Hulle het die lot gewerp, en dit het vir hom op die noordekant geval; vir Obed-Edom was dit op die suidekant; vir sy seuns by die voorraadkamers; vir Suppim en Gosa was dit die westekant, saam met die Sallegetpoort by die pad teen die opdraande. Afdeling vir afdeling was daar: aan die oostekant 6 Leviete; aan die noordekant daagliks 4; aan die suidekant daagliks 4; by die voorraadkamers twee-twee; en by die buitegeboue aan die westekant, 4 by die pad en 2 by die buitegeboue. Dit was dan die afdelings van die poortwagte van die familie van Korag en die familie van Merari. Verder, wat die Leviete betref, hulle familielede moes toesig hou oor die skatte van die huis van God. Vir die gewyde skatte was die nageslag van Ladan verantwoordelik, nakomelinge van Gerson deur Ladan. Die familiehoofde wat deur Ladan van Gerson afstam, Jegiël, die seuns van Jegiël, Setam en sy broer Joël, moes toesig hou oor die skatte van die huis van die Here. Wat die nakomelinge van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël betref: Subael, seun van Gersom, seun van Moses, was die leier wat moes toesig hou oor die skatte. Sy familielede aan Eliëser se kant, was Eliëser se seun Regabja, sy seun Jesaja, sy seun Joram, sy seun Sigri, en sy seun Selomit. Hierdie Selomit en sy familielede moes toesig hou oor al die gewyde skatte wat koning Dawid en die familiehoofde, naamlik die •aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, en die leëraanvoerders aan die Here gewy het – as deel van die oorlogsbuit het hulle dit gewy vir die instandhouding van die huis van die Here – ook alles wat die siener Samuel, wat Saul, seun van Kis, Abner, seun van Ner, en wat Joab, seun van Seruja, gewy het. Alles wat gewy is, was onder beheer van Selomit en sy familielede. Wat die nakomelinge van Jishar betref: Kenanja en sy seuns het buite die •tempel as opsieners en regters oor Israel opgetree. Wat die nakomelinge van Hebron betref: Gasabja en sy familielede, 'n duisend sewehonderd onverskrokke manne, moes die administrasie van Israel in verband met al die werk van die Here en die diens aan die koning behartig, van die Jordaan af weswaarts. Wat die nakomelinge van Hebron betref: Volgens die familiegeskiedenis van die voorouers, was Jerija die hoof van die nakomelinge van Hebron. In die veertigste jaar van Dawid se regering is ondersoek ingestel, en daar is in Jaser in Gilead onder hulle dapper krygers gevind. Sy familielede was tweeduisend sewehonderd onverskrokke familiehoofde. Koning Dawid het hulle laat toesig hou oor die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in verband met enige saak aangaande God of die koning. Die Israeliete volgens hulle getal, die familiehoofde, die •aanvoerders van duisend en honderd, en hulle opsieners, was in diens van die koning met betrekking tot elke saak van die leërafdelings wat maand vir maand aan diens of van diens af was, vir al die maande van die jaar. In elke afdeling was daar 24 000 man. Die eerste afdeling vir die eerste maand was onder beheer van Jasobam, seun van Sabdiël. In sy afdeling was daar 24 000 man. Uit die nageslag van Peres was hy die hoof van al die aanvoerders van leërafdelings vir die eerste maand. Die afdeling van die tweede maand was onder beheer van Dodai, uit Agoag. Miklot was die leier van sy afdeling. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die derde aanvoerder van die leër, vir die derde maand, was Benaja, seun van Jojada, die hoëpriester. In sy afdeling was daar 24 000 man. Hierdie Benaja was 'n held onder die dertig, en in beheer van die dertig. Sy seun Ammisabad was in bevel van sy afdeling. Die vierde, vir die vierde maand, was Asael, die broer van Joab, en ná hom was dit sy seun Sebadja. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die vyfde, vir die vyfde maand, was die aanvoerder Samhut, uit Jisrag. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die sesde, vir die sesde maand, was Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die sewende, vir die sewende maand, was Geles, uit Pelon, uit die nageslag van Efraim. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die agtste, vir die agtste maand, was Sibbegai, uit Gusa, uit die Seragfamilie. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die negende, vir die negende maand, was Abiëser, uit Anatot, uit die stam van Benjamin. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die tiende, vir die tiende maand, was Marai, uit Netofa, uit die Seragfamilie. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die elfde, vir die elfde maand, was Benaja, uit Piraton, uit die nageslag van Efraim. In sy afdeling was daar 24 000 man. Die twaalfde, vir die twaalfde maand, was Geled, uit Netofa, uit die Otniël-familie. In sy afdeling was daar 24 000 man. Persone in beheer van die stamme van Israel: Vir die Rubeniete was die leier Eliëser, seun van Sigri; vir die Simeoniete was dit Sefatja, seun van Maäga; vir Levi was dit Gasabja, seun van Kemuel; vir Aäron was dit Sadok; vir Juda was dit Elihu, een van die broers van Dawid; vir Issaskar was dit Omri, seun van Migael; vir Sebulon was dit Jismaja, seun van Obadja; vir Naftali was dit Jerimot, seun van Asriël; vir die nageslag van Efraim was dit Hosea, seun van Asasja; vir die halwe stam van Manasse was dit Joël, seun van Pedaja; vir die halwe stam van Manasse in Gilead was dit Jiddo, seun van Sagaria; vir Benjamin was dit Jaäsiël, seun van Abner; vir Dan was dit Asarel, seun van Jerogam. Hulle was die aanvoerders van die stamme van Israel. Dawid het die getal van dié wat twintig jaar en jonger was nie in 'n lys opgeneem nie, want die Here het gesê dat Hy Israel so baie soos die sterre in die hemelruim sou maak. Joab, seun van Seruja, het hulle begin tel, maar dit nie afgehandel nie. 'n Oordeel uit toorn het Israel getref oor hierdie tellery, en die getal is toe nie opgeteken by die getal in die kronieke van koning Dawid nie. Oor die voorrade van die koning het Asmawet, seun van Adiël, toesig gehou; en oor die voorrade op die platteland, in die dorpe, gehuggies en wagtorings het Jonatan, seun van Ussia, toesig gehou. Oor die werkers op die platteland wat die grond bewerk het, het Esri, seun van Kelub, toesig gehou. Oor die wingerde het Simi, uit Rama, toesig gehou, en oor die wynvoorrade in die wingerde het Sabdi, uit Sjefam, toesig gehou. Oor die olyfboorde en die wildevyebome in die Sjefela het Baäl-Ganan, uit Geder, toesig gehou, en oor die olievoorrade, Joas. Oor die grootvee wat in Saron gewei het, het Sitrai, uit Saron, toesig gehou, en oor die grootvee in die valleie, Safat, seun van Adlai. Oor die kamele het Obil, die Ismaeliet, toesig gehou, en oor die donkies, Jegdeja, uit Meronot. Oor die kleinvee het Jasis, uit die nageslag van Hagar, toesig gehou. Al hierdie manne was toesighouers oor die besittings wat aan koning Dawid behoort het. Jonatan, Dawid se oom, was 'n raadgewer, 'n man met insig, en 'n sekretaris. Jegiël, seun van Gagmoni, moes die koning se seuns bystaan, en Agitofel was die koning se raadgewer. Gusai, die man uit Ereg, was die vriend van die koning. Ná Agitofel was dit Jojada, seun van Benaja, en Abjatar. Die bevelvoerder van die koning se leër was Joab. Dawid het al die leiers van Israel in Jerusalem byeengebring: die leiers van stamme, die leiers van die afdelings wat in diens van die koning was, die •aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, die toesighouers oor al die besittings en vee van die koning en sy seuns, saam met die paleisamptenare, die helde en al die dapper krygers. Koning Dawid het regop gaan staan en gesê: “Luister na my, my broers en my volk! Ek het my voorgeneem om 'n rusplek vir die verbondsark van die Here en vir die voetbank van die voete van ons God te bou. Ek het voorbereidings getref vir die bouwerk, maar God het vir my gesê, ‘Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy is 'n man van oorlog en jy het bloed vergiet.’ “ Die Here, die God van Israel, het my uit my hele familie gekies om vir altyd koning te wees oor Israel; want Juda het Hy as leier gekies, en uit die huis van Juda my familie. Dit het Hom behaag om, onder my vader se seuns, juis vir my koning te maak oor die hele Israel. En uit al my seuns – want die Here het vir my baie seuns gegee – het Hy my seun Salomo gekies om op die koninklike troon van die Here oor Israel te sit. Hy het vir my gesê, ‘Jou seun Salomo, hy is die een wat my huis en my voorhowe sal bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom 'n vader wees. Ek sal sy heerskappy bestendig vir altyd, as hy daarop voorbereid is om my gebooie en my bepalings uit te voer, soos dit vandag is.’ “ Nou, met die hele Israel, die geloofsgemeenskap van die Here, as ooggetuies, en ten aanhore van ons God, gee ek opdrag, ‘Kom al die gebooie van die Here julle God na, en streef dit na, sodat julle hierdie goeie land vir altyd as 'n besitting kan behou en kan nalaat vir julle kinders ná julle. En jy, my seun Salomo, erken die God van jou vader, en dien Hom met 'n onverdeelde hart en 'n gewillige gees, want die Here ondersoek alle harte, en in elke bedoeling van die gedagtes het Hy insig. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. Besef nou dat die Here jou gekies het om 'n gebou as heiligdom op te rig. Wees moedig en doen dit!’ ” Dawid het toe vir sy seun Salomo 'n plan van die •tempel se portaal, sy geboue, sy skatkamers, sy bovertrekke, sy binnevertrekke en die tuiste van die •versoendeksel gegee – die plan van alles wat hy in gedagte gehad het vir die voorhowe van die huis van die Here, vir al die vertrekke rondom, vir die voorraadkamers van die huis van God, vir die gewyde gawes se skatkamers; die plan vir die afdelings van die priesters en Leviete, vir al die dienswerk in die huis van die Here, en vir al die gereedskap vir die diens in die huis van die Here; en vir die goud – die gewig van die goud vir al die gereedskap wat nodig was vir die verskillende dienste; en vir al die silwergereedskap volgens gewig vir al die gereedskap wat nodig was vir die verskillende dienste; en die gewig van die goue menoras en hulle goue lampe, met die gewig van elke menora en sy lampe, en vir die silwermenoras, met die gewig van 'n menora en sy lampe ooreenkomstig die gebruik van elke menora, saam met die goud – die gewig wat nodig was vir die tafels met die gerangskikte brood, die gewig van elke tafel en van die silwer vir die silwertafels; en die vurke, offerbakke en bekers van suiwer goud; en vir die goue bakke, met die gewig van elke bak, en die silwerbakke, met die gewig van elke bak; en die plan van die altaar vir die reukwerk, van gesuiwerde goud, met sy gewig; dan ook nog die plan vir die wa – die goue gerubs wat hulle vlerke uitsprei en die verbondsark van die Here bedek. “Dit alles, die volledige uitvoering van die plan, is op skrif uit die hand van die Here, wat oor my was,” het Dawid gesê. Toe sê Dawid vir sy seun Salomo: “Wees dapper en sterk en doen die werk! Moenie bang wees nie, en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of verlaat, totdat al die werk vir die diens in die huis van die Here afgehandel is nie. Hier is die afdelings van die priesters en Leviete, gereed vir elke diens in die huis van God. En by jou, met die oog op elke taak, is daar verskillende vrywilligers met vaardigheid vir elke soort diens. Die leiers en die hele volk is gereed vir al jou opdragte.” Koning Dawid het toe vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “My seun Salomo, die een wat God uitgekies het, is nog jonk en onervare. Die taak is omvangryk, want dit is nie vir 'n mens wat die vesting bedoel is nie, maar vir die Here God. Na my beste vermoë het ek vir die huis van my God voorsien: goud vir die goue, silwer vir die silwer-, brons vir die brons-, yster vir die ystervoorwerpe en hout vir die houtwerk; ook •oniksstene en •edelstene as monterings, malagiet en veelkleurige stene, allerlei kosbare stene, en stene van albaster, in oorvloed. Buitendien, uit toegeneentheid teenoor die huis van my God het ek dit wat ek persoonlik besit aan goud en silwer, vir die huis van my God gegee, bo en behalwe alles wat ek vir die •heilige •tempel gereedgekry het: drieduisend kikkar goud, van die goud van Ofir, en seweduisend kikkar gesuiwerde silwer vir die bedekking van die vertrekke se mure – goud vir die goue voorwerpe en silwer vir die silwervoorwerpe, en vir al die werk deur die hand van vakmanne. Wie is bereid om hom vandag so aan die Here toe te wy?” Toe het die leiers van die families, die leiers van die stamme van Israel, die •aanvoerders van duisend en van honderd en die toesighouers in diens van die koning, vrywillige gawes gegee. Hulle het vir die werk aan die huis van die Here in goud vyfduisend kikkar en tienduisend dariek gegee, in silwer tienduisend kikkar, in brons agttienduisend kikkar, en in yster honderdduisend kikkar. Die wat edelstene in hulle besit gehad het, het dit gegee vir die skatkamer van die huis van die Here, onder beheer van Jegiël, die Gersoniet. Die volk was verheug oor die gesaghebbers se bereidwilligheid, want hulle het dit van harte vrywillig vir die Here gegee. Ook koning Dawid was besonder verheug. Daarop het Dawid die Here ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê: “U moet geprys word, Here, God van ons vader Israel, van altyd af en vir ewig. Aan U, Here, behoort die grootheid, die sterkte, die luister, die roem en die majesteit – ja, alles in die hemel en op die aarde. Aan U, Here, behoort die koningskap, en U is as hoof verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U, en U regeer oor alles. In u hand is krag en sterkte, en dit is in u hand om enigiemand groot en sterk te maak. Daarom, ons God, prys ons U en loof ons u luisterryke Naam. Want wie is ek, en wie is my volk, dat ons in staat is om vrywillige gawes soos hierdie te gee? Ja, van U kom alles, en uit u hand het ons dit aan U gegee. Want •vreemdelinge is ons voor U, en bywoners, soos al ons voorouers. Soos 'n skaduwee is ons dae op die aarde, en daar is geen sekerheid nie. Here ons God, al hierdie rykdom wat ons gereedgekry het om vir U 'n huis vir u heilige Naam te bou, is uit u hand en behoort alles aan U. Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, bewaar dit vir ewig as die gesindheid van die gedagtes in die harte van u volk. Rig hulle harte op U, en gee aan my seun Salomo 'n onverdeelde hart om u gebooie, u bepalings en vaste voorskrifte, na te kom en dit alles uit te voer, en om die vesting te bou waarvoor ek voorbereidings getref het.” Toe het Dawid vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “Prys dan die Here julle God!” Daarop het die hele geloofsgemeenskap die Here, die God van hulle voorouers, geprys. Hulle het gekniel en in eerbied gebuig voor die Here en die koning. Die volgende dag het hulle vir die Here offers geslag en brandoffers vir die Here gebring: 'n duisend bulle, 'n duisend ramme, 'n duisend lammers, met die bypassende •drankoffers, en met •maaltydoffers in oorvloed vir die hele Israel. Op daardie dag het hulle met groot vreugde voor die Here geëet en gedrink. Hulle het Salomo, die seun van Dawid, 'n tweede keer as koning ingehuldig. Hulle het hom vir die Here as leier gesalf, en Sadok as priester. Salomo het op die troon van die Here gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid. Hy was suksesvol, en die hele Israel was aan hom gehoorsaam. Al die leiers en die helde, asook al die seuns van koning Dawid, het hulle aan koning Salomo onderwerp. Die Here het Salomo buitengewone aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hy het aan hom koninklike majesteit verleen wat geen koning oor Israel voor hom geniet het nie. Dawid, seun van Isai, was koning oor die hele Israel. Die tydperk wat hy koning was oor Israel, was veertig jaar: In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning. Hy het ná 'n vol lewe op 'n rype ouderdom gesterf – met rykdom en aansien. Sy seun Salomo het in sy plek koning geword. Die vroeëre en latere geskiedenis van koning Dawid, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van die siener Samuel, in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad, met 'n weergawe van sy hele koningskap en sy magtige dade; en ook die lotgevalle wat hom en Israel en al die koninkryke van die aarde oorgekom het. Salomo, die seun van Dawid, het sy mag oor sy koninkryk versterk. Die Here sy God was met hom, en Hy het hom buitengewone aansien gegee. Toe het Salomo met die hele Israel gepraat, met die •aanvoerders van duisend en van honderd, met die regters en met elke leier van die hele Israel, al die familiehoofde. Salomo en die hele geloofsgemeenskap saam met hom het na die •offerhoogte in Gibeon gegaan, want dit is waar God se Tent van Ontmoeting was, die tent wat Moses, die dienskneg van die Here, in die woestyn gemaak het. Die ark van God het Dawid egter al vroeër uit Kirjat-Jearim opgeneem na die plek wat Dawid daarvoor gereedgemaak het, want hy het 'n tent daarvoor opgeslaan in Jerusalem. Die bronsaltaar wat Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was daar voor die •tabernakel van die Here. Salomo en die geloofsgemeenskap het Hom gaan raadpleeg. Salomo het daar, op die bronsaltaar wat by die Tent van Ontmoeting was, voor die Here brandoffers gebring. Hy het 'n duisend brandoffers daarop gebring. In daardie nag het God aan Salomo verskyn. Hy het vir hom gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee!” Salomo het vir God gesê: “U self het aan my vader Dawid oorvloedige troue liefde bewys, en U het my koning gemaak in sy plek. Here God, laat nou u belofte aan my vader Dawid bewaarheid word, want dit is U wat my koning gemaak het oor 'n volk so talryk soos die stof van die aarde. Wysheid en oordeelsvermoë, gee dit dan nou vir my, sodat ek voor hierdie volk kan uittrek en terugkeer. Want wie kan regspreek oor hierdie groot volk van U?” God het Salomo geantwoord: “Omdat juis dit jou hartsbegeerte is, en jy nie gevra het vir rykdom, besittings en eer, of die lewe van hulle wat jou haat nie, ook nie vir 'n lang lewe nie, maar vir jouself wysheid en oordeelsvermoë gevra het, sodat jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, sal die wysheid en oordeelsvermoë aan jou gegee word. Maar ook rykdom en besittings en eer sal Ek vir jou gee, soveel as wat konings wat voor jou was, nie gehad het nie, en dié wat ná jou kom, nie sal hê nie. ” Salomo het toe van die offerhoogte in Gibeon, van die Tent van Ontmoeting af, na Jerusalem gegaan, en hy het oor Israel regeer. Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Die koning het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 'n Strydwa, ingevoer uit Egipte, het seshonderd sikkel silwer gekos, en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram. Salomo het opdrag gegee dat 'n huis vir die Naam van die Here en ook sy eie koninklike paleis gebou moet word. Salomo het sewentigduisend man as draers aangewys, tagtigduisend as klipkappers in die berge, en drieduisend seshonderd as toesighouers oor hulle. Salomo laat weet toe vir Huram, die koning van Tirus: “Soos wat u vir my vader Dawid gedoen het toe u vir hom sederhout gestuur het om 'n paleis te bou om in te woon, moet u ook vir my doen. Kyk, ek gaan 'n •tempel bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te wy deur voor Hom geurige reukwerk te verbrand, sodat daar gereeld •vertoonbrode en soggens en saans brandoffers kan wees op die Sabbatte, die nuwemaansfeeste en die vasgestelde feestye van die Here ons God, as 'n verpligting wat altyd op Israel rus. Die tempel wat ek gaan bou, sal groot wees, want ons God is groter as al die gode. Maar wie is werklik in staat om vir Hom 'n huis te bou? Ja, die hemelruim, die hoogste hemele, kan Hom nie omvat nie. Wie is ek dan dat ek vir Hom 'n huis wil bou, behalwe as 'n plek om daar voor Hom offers te verbrand? Stuur dan nou vir my iemand wat vaardig is om met goud, silwer, brons en yster te werk, en ook met purperrooi, karmosynrooi en pers materiaal, en wat weet hoe om graveerwerk te doen saam met die vakmanne hier by my in Juda en in Jerusalem wat deur my vader Dawid voorsien is. Stuur ook vir my seder-, sipres- en jenewerhout uit die Libanon, want ek weet dat u dienaars weet hoe om bome in die Libanon te kap. Kyk, my dienaars sal u dienaars bystaan om my van groot hoeveelhede hout te voorsien, want die huis wat ek gaan bou, moet groot en indrukwekkend wees. Kyk, vir u dienaars, vir die houtkappers wat die bome kap, sal ek twintigduisend kor koring as voedselvoorraad, twintigduisend kor gars, twintigduisend bat wyn en twintigduisend bat olyfolie gee.” Huram, die koning van Tirus, het 'n skriftelike antwoord vir Salomo gestuur: “Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.” Huram het ook gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat die hemel en die aarde gemaak en vir koning Dawid 'n wyse seun gegee het, met intelligensie en insig, wat vir die Here 'n huis sal bou en 'n paleis vir sy eie koninkryk. Ek stuur dan nou vir u 'n wyse man met insig, Huram-Abi. Hy is die seun van 'n vrou uit die dogters van Dan, en sy vader is 'n man uit Tirus. Hy weet hoe om met goud en silwer, brons, yster, klip en hout, purperrooi en pers materiaal, fyn linne en karmosynrooi stof te werk, en hoe om enige graveerwerk te doen. Hy weet hoe om enige plan wat aan hom voorgelê word, vindingryk uit te voer saam met u vakmanne en die vakmanne van my heer, u vader Dawid. Die koring en gars, die olyfolie en wyn waarvan my heer gepraat het, kan hy dan nou vir sy dienaars stuur. Aan ons kant sal ons die bome kap uit die Libanonbos, soveel as wat u nodig het, en dit vir u met vlotte seelangs na Jafo bring. U kan dit dan self na Jerusalem laat vervoer.” Salomo het toe al die manne wat •vreemdelinge in die land Israel was, getel. Dit was ná die sensus wat sy vader Dawid van hulle gehou het. Daar is honderd drie-en-vyftigduisend seshonderd van hulle gevind. Uit hulle het hy sewentigduisend draers gemaak, tagtigduisend klipkappers in die berge en drieduisend seshonderd was toesighouers om die mense te laat werk. Salomo het toe begin om die huis van die Here in Jerusalem te bou, op die berg Moria, waar die Here aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek van Dawid wat hy gereedgemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet. Hy het begin bou op die tweede dag van die tweede maand in die vierde jaar van sy regering. Dit was Salomo se grondplan vir die bou van die huis van God: Gemeet in el volgens die ou mate, was die lengte sestig el, en die breedte twintig el. Die portaal wat aan die voorkant oor die volle breedte van die •tempel gestrek het, was twintig el breed en twintig el hoog. Salomo het dit aan die binnekant met suiwer goud oorgetrek. Die groot vertrek het hy binne met sipreshout bedek, en dit toe met goud van hoë gehalte oorgetrek. Hy het palmette en kettingversierings daarop aangebring. Hy het in die vertrek edelstene ingelê as versiering. Die goud was goud van Parwajim. Hy het die vertrek – dit is die balke, die drumpels, sy mure en deure – met goud oorgetrek en gerubs teen die mure gegraveer. Hy het ook die allerheiligste vertrek ingerig. Die lengte daarvan, oor die breedte van die tempel, was twintig el en sy breedte twintig el. Hy het dit binne met seshonderd kikkar goud van hoë gehalte bedek. Die gewig van die spykers was vyftig sikkel goud. Die bovertrekke het hy ook binne met goud bedek. Vir die allerheiligste vertrek het hy twee gerubs van gietwerk gemaak en hulle met goud oorgetrek. Wat die vlerke van die gerubs betref: Die lengte daarvan was altesaam twintig el. Die een gerub se vlerk was vyf el lank, en dit het aan die een muur van die vertrek geraak. Die ander vlerk was vyf el lank, en dit het aan die vlerk van die ander gerub geraak. Die ander gerub se vlerk was ook vyf el lank, en het aan die ander muur van die vertrek geraak. Die ander vlerk was ook vyf el lank, en dit het gestrek tot teen die vlerk van die ander gerub. Oopgesprei, was die vlerke van hierdie gerubs twintig el lank. Hulle het op hulle voete gestaan met hulle gesigte na die groot vertrek. Salomo het die voorhangsel gemaak van pers, karmosynrooi en purperrooi materiaal en fyn linne. Hy het gerubs daarop aangebring. Hy het voor die tempel twee pilare gemaak, vyf-en-dertig el hoog, elk met 'n kapiteel van vyf el op die bopunt daarvan. Hy het kettings gemaak soos 'n halssnoer en dit om die bopunt van die pilare gesit. Hy het honderd granate gemaak en dit aan die kettings vasgeheg. Hy het die pilare aan die voorkant van die hoofvertrek opgerig, een aan die regterkant en een aan die linkerkant. Die een aan die regterkant het hy Jagin genoem, en die een aan die linkerkant Boas. Hy het 'n altaar van brons gemaak, twintig el lank, twintig el breed en tien el hoog. Toe het hy die See gemaak, 'n gietstuk tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. 'n Maatlyn van dertig el kon dit omspan. Aan die onderkant, reg rondom, is 'n beeld van beeste geplaas, tien per el. Hulle was rondom die See gerangskik in twee rye. Die beeste is in een stuk saam met die See gegiet. Dit het op twaalf beeste gestaan – drie wat noord kyk, drie wat wes kyk, drie wat suid kyk en drie wat oos kyk. Die See het bo-op hulle gerus, en al hulle agterlywe was na binne gekeer. Die dikte van die wand was 'n handbreedte, en die rand was soos dié van 'n beker, soos die kelk van 'n narsing. Dit kon drieduisend bat hou. Hy het ook tien waskomme gemaak, en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas om daarin af te spoel – alles wat gebruik is vir die •brandoffer is daarin skoon gespoel. Die See was egter net vir die priesters om hulle in af te spoel. Hy het tien goue menoras gemaak ooreenkomstig die voorskrif daarvoor. Hy het in die hoofvertrek vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas. Hy het ook tien tafels gemaak. Hy het in die hoofvertrek vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas. Daarna het hy honderd goue offerbakke gemaak. Toe het hy die binnehof van die priesters gemaak, asook die groot buitehof en die deure vir die ruimte. Hierdie deure het hy met brons oorgetrek. Die See het hy aan die regterkant geplaas, in die suidoostelike hoek. Toe het Huram die houers, die skoppies en offerbakke gemaak. So het Huram die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo in die huis van God moes doen. Dit was: twee pilare; die twee bolvormige kapitele aan die bopunt van die twee pilare; die twee stelle vlegwerk waarmee die twee bolvormige kapitele aan die bopunt van die pilare bedek is; die vierhonderd granate vir die twee stelle vlegwerk, om die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, te bedek – twee rye granate vir elke stel vlegwerk; die verskuifbare staanders wat hy gemaak het en die waskomme op die staanders; die een See; die twaalf beeste daaronder; die houers, skoppies, drietandvurke en al die bypassende gereedskap. Huram-Abi het dit vir koning Salomo, vir die huis van die Here, gemaak van gepoleerde brons. In die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Seredata, het die koning dit in swaar grond gegiet. Salomo het al hierdie voorwerpe in sulke groot hoeveelhede gemaak dat die gewig van die brons nie vasgestel kon word nie. Salomo het al die voorwerpe wat in die huis van God was, gemaak: die goue altaar; die tafels waarop die •vertoonbrode was; die menoras en hulle lampe van fyngoud, om volgens voorskrif voor die heiligdom te brand; die goue blomknoppe, lampe en snuiters – dit was van die suiwerste goud; die messe, offerbakke, skottels en die vuurpanne van fyngoud, die toegang na die •tempel, dit is sy binnedeure na die •Allerheiligste, en die deure van die tempel na die hoofvertrek – dit alles was van goud. Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en al die ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van God geplaas. Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem laat byeenkom om die •verbondsark van die Here vanuit die •Stad van Dawid, dit is Sion, op te dra. Al die manne van Israel het toe by die koning byeengekom in die feestyd, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. Die priesters het die verbondsark van die Here na sy plek geneem, na die heiligdom van die •tempel, na die •Allerheiligste, onder die vlerke van die gerubs. Die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligdom. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die Here met die Israeliete 'n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipte. En toe die priesters uit die heiligdom gekom het – ja, al die priesters wat daar was, het hulleself geheilig, want die diensbeurte van afdelings het nie gegeld nie, ook die Levitiese sangers, hulle almal, Asaf, Heman en Jedoetoen, hulle nakomelinge en stamgenote, wat in linneklere gereed gestaan het aan die oostekant van die altaar met simbale, harpe en liere, en saam met hulle honderd-en-twintig priesters wat trompette blaas – het die trompetblasers en die sangers soos een man ingeval om die Here met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die Here begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die Here, gevul met 'n wolk. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van God gevul. Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê dat Hy in diepe duisternis vertoef; maar ek, ja ek, het 'n vorstelike woning vir U gebou, 'n plek vir U om in te woon in alle ewigheid.” Die koning het omgedraai en die hele geloofsgemeenskap van Israel geseën. Terwyl die hele geloofsgemeenskap van Israel daar staan, het hy gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, wat met sy mond met my vader Dawid gepraat het, en met sy hande die volgende woorde vervul het, ‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipteland gelei het, het Ek onder al die stamme van Israel nie 'n stad gekies om 'n •tempel te bou, sodat my Naam daar sou wees nie, en Ek het niemand gekies om 'n leier oor my volk Israel te wees nie. Maar nou het Ek Jerusalem gekies, sodat my Naam daar sal wees, en Ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees.’ “My vader Dawid was van voorneme om 'n tempel te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel. Maar die Here het vir my vader Dawid gesê, ‘Jy het jou voorgeneem om vir my Naam 'n tempel te bou. Dit was goed van jou dat jy jou dit voorgeneem het. Jy is egter nie die een wat die tempel sal bou nie, maar jou seun wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal die tempel vir my Naam bou.’ En die Here het sy woord wat Hy gespreek het, gestand gedoen, sodat ek in die plek van my vader Dawid opgestaan het en op die troon van Israel gaan sit het, soos die Here gesê het. Ek het die tempel vir die Naam van die Here, die God van Israel, gebou. Daar het ek die ark geplaas waarin die verbond van die Here is, die verbond wat Hy met die Israeliete gesluit het.” Toe het hy voor die altaar van die Here gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel, en sy hande uitgestrek. Ja, Salomo het 'n verhoog van brons gemaak en dit in die middel van die buitehof gesit. Dit was vyf el breed, vyf el lank en drie el hoog. Hy het daarop gaan staan en daar voor die hele geloofsgemeenskap van Israel op sy knieë neergesak, sy hande na die hemel uitgestrek, en gesê: “ Here, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel of op die aarde nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, Here, God van Israel, ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, hou nou by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur binne my wet te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, Here, God van Israel, laat u belofte wat U gemaak het aan u dienskneg, my vader Dawid, tog waar word. “ Maar kan God werklik by mense op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? “U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, Here my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg telkens voor U bid – dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar sal vestig, sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle bid in die rigting van hierdie plek. U self moet dit hoor uit die plek waar U woon, uit die hemel; U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self uit die hemel hoor en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige te vergeld, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en deur die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle terugkeer, u Naam prys en bid en voor U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor uit die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel, en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle en aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiekte uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane en kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en wanneer daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel, wat elkeen sy teistering en pyn ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê, deur u paaie te volg solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het. “ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u groot Naam, u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, en vir U ontsag mag hê soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U uit die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. “Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan 'n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na 'n land, ver of naby, en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is, en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ballingskap met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’ en hulle dan met hart en siel na U terugkeer in die land van hulle ballingskap, die land van dié wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U uit die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf, en u volk wat teen U gesondig het, vergewe. “ My God, laat nou u oë tog oop wees, en u ore aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. “Staan nou op, Here God, gaan na u rusplek, U en u magtige ark. U priesters, Here God, laat hulle geklee wees in heil, en u troue volgelinge, laat hulle vreugde vind in die goeie. Here God, moet tog nie u gesalfdes wegwys nie; onthou tog die troue beloftes aan Dawid, u dienskneg.” Net toe Salomo klaar gebid het, het vuur uit die hemel neergedaal en die •brandoffer en •maaltydoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die •tempel gevul. Die priesters kon nie die huis van die Here binnegaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul. Al die Israeliete het gesien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal. Hulle het met hulle gesigte na die grond gekniel op die plaveisel, en in aanbidding gebuig. Hulle het die Here geprys met: “Want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Die koning en die hele volk was besig om offers voor die Here te slag. Koning Salomo het offers van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag. So het die koning en die hele volk, die huis van God ingewy. Die priesters het op hulle plekke gestaan, asook die Leviete met die musiekinstrumente van die Here wat koning Dawid laat maak het om die Here mee te prys met die woorde: “Ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Terwyl hulle die loflied van Dawid voorgedra het, het die priesters wat teenoor hulle gestaan het, op hulle trompette geblaas. Die hele Israel het gestaan. Salomo het die binnekant van die voorhof wat voor die huis van die Here was, geheilig, want daar het hy die brandoffers gebring, asook die stukke vet van die maaltydoffers, omdat die bronsaltaar wat Salomo gemaak het, nie die brandoffers, •graanoffers en die stukke vet kon bevat nie. Salomo het in daardie tyd ook sewe dae lank die Huttefees gevier. Die hele Israel, vanaf Lebo-Hamat tot by die Spruit van Egipte, was saam met hom. Dit was 'n baie groot byeenkoms. Op die agtste dag het hulle 'n gewyde rusdag gevier, want die inwyding van die altaar is sewe dae lank gevier, en die Huttefees sewe dae lank. Op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hulle woonplekke teruggestuur. Hulle was verheug en met opgeruimde harte oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en Salomo en sy volk Israel gedoen het. So het Salomo die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo hom voorgeneem het om in die huis van die Here, en in sy paleis te doen, het hy suksesvol uitgevoer. Toe verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My gekies as 'n tempel vir offers. As Ek die hemelruim sluit, sodat daar geen reën is nie, of as Ek die koringkrieke opdrag gee om die land kaal te vreet, of as Ek 'n pessiekte onder my volk loslaat, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees. En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings, as jy dit nakom, sal Ek jou koninklike troon laat standhou, volgens die verbintenis wat Ek met jou vader Dawid aangegaan het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek wat in Israel heers nie.’ “As julle egter van My af wegdraai, en my vaste voorskrifte en gebooie wat Ek aan julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal Ek julle uitpluk uit my grond wat Ek aan julle gegee het, en hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek uit my teenwoordigheid verwerp. Ek sal dit tot 'n spreuk en 'n spotnaam maak by al die volke. Hierdie tempel wat so verhewe was – elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en vra, ‘Waarom het die Here so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom Hy al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ” Aan die einde van twintig jaar, waarin Salomo die huis van die Here en sy paleis gebou het, het Salomo die dorpe wat Huram vir hom gegee het, herbou en Israeliete daar gevestig. Salomo het toe na Hamat-Soba gegaan en dit oorwin. Hy het Tadmor in die woestyn versterk, asook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder as versterkte stede met mure, poortdeure en sluitbalke herbou, ook Baälat en al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, al die stede vir die strydwaens en vir die perde, ja, alles wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, almal wat nie van Israel was nie, dié van hulle nageslag wat ná hulle in die land oorgebly en wat nie deur die Israeliete vernietig is nie, hulle is deur Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk; dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens vir sy werk nie, want hulle was krygsmanne, bevelvoerders van sy adjudante en •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters van koning Salomo – tweehonderd-en-vyftig wat bevel gevoer het oor die mense. Die dogter van die farao is deur Salomo uit die •Stad van Dawid opgeneem na die paleis wat hy vir haar gebou het, want hy het gesê: “'n Vrou van my mag nie in die paleis van Dawid, die koning van Israel, woon nie, want die plekke waar die ark van die Here gekom het, is heilig.” Daarna het Salomo op die altaar van die Here wat hy voor die portaal gebou het, aan die Here •brandoffers gebring volgens die vereiste van elke dag, dit wat, ooreenkomstig die bevel van Moses, geoffer moes word op die Sabbatte, tydens die nuwemaansfeeste en die vaste feestye – drie keer per jaar by die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees. Hy het toe, volgens die voorskrif van sy vader Dawid, die afdelings van die priesters laat aantree vir hulle dienswerk, en die Leviete vir hulle verpligtinge om in die teenwoordigheid van die priesters lof te bring en om te dien volgens die vereiste van elke dag. Hy het ook die poortwagte in hulle afdelings laat aantree by elke poort, want dit was die opdrag van Dawid, die man van God. Hulle het nie afgewyk van die koning se opdrag aan die priesters en die Leviete oor enige saak of oor die skatkamers nie. So is al die werk van Salomo uitgevoer, van die dag af dat die fondament van die huis van die Here gelê is tot by die voltooiing daarvan. Die huis van die Here was volledig afgerond. Daarna het Salomo na Es-jon-Geber en na Elat, aan die seekus in die gebied van Edom gegaan. Huram het aan hom skepe onder bevel van sy dienaars beskikbaar gestel, asook dienaars wat die see geken het, en hulle het saam met Salomo se dienaars na Ofir gevaar. Hulle het van daar af vierhonderd-en-vyftig kikkar goud gebring en dit na koning Salomo geneem. Toe die koningin van Skeba die berigte oor Salomo hoor, het sy gekom om Salomo met raaisels te toets in Jerusalem. Met 'n baie groot gevolg, kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud asook edelstene, het sy by Salomo aangekom. Sy het met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir Salomo verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is, ook die paleis wat hy gebou het, die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en hulle uitrustings, en sy •brandoffers wat hy bring in die huis van die Here, het dit haar asem weggeslaan. Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar, maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel oor die omvang van u wysheid nie. U oortref die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor. Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon te plaas as koning vir die Here u God. Omdat u God Israel liefhet, en hulle altyd staande hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ” Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud en 'n baie groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nooit soveel speserye bymekaar soos wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. Verder het die dienaars van Huram en Salomo wat goud uit Ofir gebring het, ook jenewerhout en edelstene gebring; en van die jenewerhout het die koning trappe gemaak vir die huis van die Here en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So iets is nog nooit tevore in die gebied van Juda gesien nie. Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as waarmee sy by die koning aangekom het. Daarna het sy die terugtog aangepak en na haar land gegaan, sy en haar dienaars. Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. Dit was afgesien van die goud wat gekom het van die handelsreisigers en wat die handelaars gebring het. Al die konings van die Arabiere en die •streekgoewerneurs van die land het telkens vir Salomo goud en silwer gebring. Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel geplette goud het hy elke skild oorgetrek. Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak met geplette goud daarop. Elkeen van hierdie skilde het hy met driehonderd sikkel goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, genoem Bos van die Libanon, geplaas. Die koning het 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Daar was ses trappe vir die troon en 'n voetbank van goud wat aan die troon verbind was. Daar was armleunings aan elke kant van die sitplek, met twee leeus wat langs die armleunings staan. Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie. Al die drinkgerei van koning Salomo was van goud, en al die toebehore in die saal, Bos van die Libanon, was van fyngoud. Daar was nie silwer nie. Dit is nie in koning Salomo se tyd as waardevol geag nie, want die koning het skepe gehad wat, met die dienaars van Huram daarop, na Tarsis kon vaar. Een keer in drie jaar het die handelskepe aangekom, gelaai met goud en silwer, ivoor, bobbejane en ape. So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde. Al die konings van die aarde het Salomo se teenwoordigheid gereeld opgesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. Elkeen het sy geskenk saamgebring: artikels van silwer en goud, kledingstukke, wapens en speserye, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur. Salomo het vierduisend stalle vir die perde en strydwaens gehad, en die strydwabemanning was twaalfduisend. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Hy het oor al die konings geheers; van die Rivier af tot in die land van die Filistyne en tot teen die grens van Egipte. Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Perde is vir Salomo uit Egipte en al die ander lande ingevoer. Die res van die geskiedenis van Salomo, die vroeëre en latere geskiedenis, is dit nie opgeteken in die Geskiedenis van Natan, die profeet, in die Profesie van Agija, die man uit Silo, en in die Visioen van die siener Jedi oor Jerobeam, seun van Nebat, nie? Salomo het in Jerusalem veertig jaar lank as koning geheers oor die hele Israel. Salomo het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die •Stad van Dawid, sy vader, begrawe. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword. Rehabeam het na Sigem gegaan, want dit was na Sigem waarheen die hele Israel gekom het om hom koning te maak. Toe Jerobeam, seun van Nebat, dit hoor – hy was nog steeds in Egipte, waarheen hy van koning Salomo af weggevlug het – het hy uit Egipte teruggekeer. Hulle het hom toe ontbied, en Jerobeam en die hele Israel het gekom en met Rehabeam gepraat en gesê: “U vader het ons juk hard gemaak. Maak nou die harde slawewerk van u vader en die swaar juk wat hy op ons gelê het, ligter, dan sal ons u dien.” Hy het vir hulle gesê: “Kom oor drie dae weer terug na my.” Die volk het toe weggegaan. Koning Rehabeam vra toe raad by die oudstes wat in sy vader, koning Salomo, se diens gestaan het toe dié nog geleef het: “Wat raai julle my aan moet die antwoord aan hierdie volk wees?” Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk, hulle goedgesind is en mooi met hulle praat, sal hulle altyd u dienaars wees.” Hy het egter die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gevra by die jong manne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het. Hy het vir hulle gevra: “Wat raai julle my aan moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het, ‘Verlig die juk wat u vader op ons gelê het’?” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, sê toe vir hom: “So moet jy sê vir die volk wat vir jou gesê het, ‘U vader het ons juk swaar gemaak; maar u, maak dit ligter op ons!’ So moet jy dit aan hulle stel, ‘My pinkie is dikker as my vader se middellyf. Daarom, my vader het 'n swaar juk op julle gelê; maar ek gaan by julle juk nog byvoeg. My vader het julle met swepe gekasty, maar ek sal dit met skerpioene doen.’ ” Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag na Rehabeam toe gekom, soos die koning met hulle afgespreek het deur te sê: “Kom terug na my op die derde dag.” Die koning het die volk hard geantwoord; ja, koning Rehabeam het die raad van die oudstes in die wind geslaan. In ooreenstemming met die raad van die jong manne, het hy hulle aangespreek: “My vader het julle juk swaar gemaak, maar ek gaan dit nog erger maak. My vader het julle met swepe gekasty, maar ek met skerpioene.” Die koning het nie na die volk geluister nie – want dit was 'n beskikking van God, sodat die Here sy belofte wat Hy by monde van Agija, die man uit Silo, aan Jerobeam, seun van Nebat, gemaak het, gestand kon doen. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord: “Watter aanspraak het ons op Dawid? Ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel! Sien nou om na jou eie huis, Dawid!” Die hele Israel het toe na hulle tente gegaan. Die Israeliete wat in die dorpe van Juda woon, oor hulle was Rehabeam koning. Koning Rehabeam het Hadoram, wat in bevel van die dwangarbeid was, gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe gegooi en hy het gesterf. Koning Rehabeam het daarin geslaag om op sy strydwa te klim om na Jerusalem te vlug. So het Israel in verset gekom teen die huis van Dawid. Dit is vandag nog so. Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam terug te kry. Maar die woord van die Here het tot Semaja, die man van God, gekom: “Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele Israel in Juda en Benjamin, ‘So sê die Here: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen. ” ’ ” Hulle het die woorde van die Here gehoorsaam en teruggekeer van die veldtog teen Jerobeam. Rehabeam het hom in Jerusalem gevestig en dorpe in Juda tot versterkte stede uitgebou. Hy het Betlehem, Etam en Tekoa uitgebou, ook Bet-Sur, Sogo en Adullam, Gat, Maresa en •Sif, Adorajim, Lagis en Aseka, Sora, Ajalon en Hebron. Dit was stede wat versterk is in Juda en Benjamin. Hy het die vestingstede versterk en daarin leiers, voorrade kos, olyfolie en wyn geplaas, asook grootskilde en steekspiese in elke enkele stad. Hy het hulle tot die uiterste versterk, en Juda en Benjamin het vir hom behoue gebly. Die priesters en Leviete in die hele Israel het hulle uit al hulle gebiede by hom geskaar. Ja, die Leviete het hulle meent- en erfgronde agtergelaat en na Juda en Jerusalem gegaan, omdat Jerobeam en sy seuns hulle uit priesterdiens aan die Here uitgesluit het, en vir homself priesters aangestel het vir die offerhoogtes en vir die •veldgode en die kalwers wat hy gemaak het. Die Leviete is gevolg deur mense uit al die stamme van Israel wat hulle hart daarop gerig het om die Here, die God van Israel, te soek. Hulle het na Jerusalem gekom om vir die Here, die God van hulle voorouers, offers te slag. Hulle het die koninkryk van Juda versterk en Rehabeam, seun van Salomo, drie jaar lank ondersteun, omdat hulle vir drie jaar die pad van Dawid en Salomo gevolg het. Rehabeam het vir hom Magalat as vrou geneem. Sy was die dogter van Jerimot, seun van Dawid en Abihajil, dogter van Eliab, seun van Isai. Sy het vir hom seuns in die wêreld gebring: Jeüs, Semarja en Saham. Ná haar het hy Maäga, dogter van Absalom, as vrou geneem. Sy het vir hom Abia, Attai, Sisa en Selomit in die wêreld gebring. Rehabeam het Maäga, Absalom se dogter, liewer gehad as al sy ander vroue en byvroue. Ja, hy het agttien vroue en sestig byvroue geneem. Hy het agt-en-twintig seuns en sestig dogters verwek. Rehabeam het Abia, seun van Maäga, as hoof en leier aangestel oor sy broers, want hy wou hom koning maak. Hy was verstandig en het van sy seuns oor al die gebiede van Juda en Benjamin uitgeplaas, in al die stede wat versterk is. Hy het aan hulle kosvoorraad in oorvloed verskaf en 'n menigte vroue vir hulle uitgesoek. Toe Rehabeam se koningskap stewig gevestig was en hy magtig geword het, het hy die wet van die Here verlaat, en die hele Israel saam met hom. Omdat hulle ontrou was aan die Here, gebeur dit toe dat Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam optrek teen Jerusalem met eenduisend tweehonderd strydwaens, sestigduisend perderuiters en ontelbare manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het: Libiërs, Sukkiete en Kussiete. Hy het die stede wat versterk is van Juda ingeneem en tot by Jerusalem gevorder. Semaja, die profeet, kom toe na Rehabeam en na die •aanvoerders van Juda wat vanweë Sisak se optrede in Jerusalem byeengekom het, en sê vir hulle: “So sê die Here, ‘Júlle het My verlaat, nou laat Ek julle op my beurt in die hand van Sisak.’ ” Die aanvoerders van Israel en die koning het hulle verootmoedig en gesê: “Die Here het gelyk.” Toe die Here sien dat hulle hulle verootmoedig, het die woord van die Here tot Semaja gekom: “Hulle verootmoedig hulle. Ek sal hulle nie vernietig nie, maar sal binnekort vir hulle uitkoms bied. My woede sal nie oor Jerusalem uitgestort word deur die hand van Sisak nie, maar hulle sal sy onderdane word, sodat hulle sal ervaar wat diens aan My inhou teenoor diens aan die koninkryke van ander lande.” Toe Sisak, die koning van Egipte, teen Jerusalem opgetrek het, het hy die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. Telkens wanneer die koning die huis van die Here binnegegaan het, het die hardlopers ook ingegaan en die skilde gedra, maar dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers. Toe Rehabeam hom verootmoedig het, is die toorn van die Here van hom afgewend. Hy het hom nie heeltemal vernietig nie. Ook in Juda was daar nog goeie dinge. Koning Rehabeam het sy posisie in Jerusalem versterk en het aanhou regeer. Ja, Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die Here gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. Hy het gedoen wat verkeerd is, want hy het nie sy hart daarop gerig om die Here te soek nie. Die vroeëre en latere geskiedenis van Rehabeam, is dit nie as 'n geslagsregister opgeteken in die Geskiedenis van Semaja die profeet en Iddo die siener nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is in die •Stad van Dawid begrawe. Sy seun Abia het in sy plek koning geword. In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning geword oor Juda. Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Migaja, dogter van Uriël, uit Gibea. Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het die geveg begin met 'n leër van heldhaftige vegters – vierhonderdduisend uitgesoektes. Jerobeam het teenoor hom gevegslinies van agthonderdduisend opgestel, uitgesoekte manne, dapper krygers. Abia het toe op die berg Semarajim, wat in die heuwelland van Efraim is, gaan staan en gesê: “Luister na my, Jerobeam en die hele Israel. Is dit nie aan julle bekend dat die Here, die God van Israel, die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid, aan hom en sy nageslag, gegee het deur 'n verbond van sout nie? Maar Jerobeam, seun van Nebat, 'n amptenaar van Salomo, seun van Dawid, het opgestaan en teen sy heer in opstand gekom. Ongedissiplineerde manne, deugniete, het om hom byeengekom en kragte saamgesnoer teen Rehabeam, seun van Salomo. Rehabeam was jonk en onervare en kon hom nie teen hulle handhaaf nie. En nou dink julle dat julle julleself kan handhaaf teen die koningskap van die Here, wat in die hand van Dawid se nageslag is, terwyl julle so 'n groot menigte is en daar by julle goue kalwers is wat Jerobeam vir julle as gode gemaak het. Het julle nie die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en die Leviete, uitgedryf en vir julleself priesters gemaak soos die volke van ander lande nie? Elkeen wat kom met 'n jong bul en sewe ramme om homself te wy, word 'n priester vir nie-gode! Maar óns, die Here is ons God en ons het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die Here dien, is die nageslag van Aäron, en die Leviete is in sy diens. Hulle verbrand elke oggend en elke aand •brandoffers en geurige reukwerk vir die Here. Brood is gerangskik op die rein tafel en die goue menora is daar en sy lampe moet elke aand brand. Ja, ons kom die verpligtinge teenoor die Here ons God na, maar julle het Hom verlaat. Kyk, by ons is God aan die hoof, en sy priesters met die trompette is gereed om die oorlogskreet teen julle aan te hef. Israeliete, moenie in 'n geveg teen die Here, die God van julle voorouers, betrokke raak nie, want julle sal nie slaag nie.” Maar Jerobeam het manne omgestuur om 'n hinderlaag aan hulle agterkant op te stel. Hulle was toe voor Juda, en die hinderlaag was agter Juda. Toe Juda omdraai – kyk, toe is die geveg voor en agter hulle! Hulle het na die Here om hulp geroep terwyl die priesters op die trompette blaas. Die manne van Juda het die oorlogskreet aangehef. Toe die manne van Juda die oorlogskreet aanhef, het God vir Jerobeam en die hele Israel voor Abia en Juda uit verslaan. Die Israeliete het voor Juda gevlug, en God het hulle in hulle hand gegee. Abia en sy manskappe het 'n groot slagting onder hulle aangerig – van Israel het daar vyfhonderdduisend uitgesoekte manskappe as gesneuweldes bly lê. Die Israeliete is by dié geleentheid verneder, en die Judeërs het die oorhand gehad, omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, gesteun het. Abia het Jerobeam agternagesit en dorpe van hom afgeneem: Bet-El met sy omliggende dorpies, Jesana met sy omliggende dorpies en Efron met sy omliggende dorpies. Jerobeam het nie weer sy kragte herwin in die tyd van Abia nie. Die Here het hom getref en hy het gesterf. Abia het sy posisie egter verstewig. Hy het vir hom veertien vroue geneem en het twee-en-twintig seuns en sestien dogters verwek. Die verdere geskiedenis van Abia, sy ondernemings en sy woorde, is opgeteken in die geskrif van Iddo, die profeet. Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die •Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword, en in sy tyd het die land tien jaar lank rus gehad. Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. Hy het die vreemde altare en die offerhoogtes verwyder. Hy het die gedenkstene vernietig en die asjeras afgekap, en Juda aangesê om die Here, die God van hulle voorouers, te raadpleeg en om sy wet en gebooie uit te voer. Uit al die dorpe van Juda het hy die offerhoogtes en wierookaltare verwyder. Die koninkryk het rus gehad onder hom. Hy het stede wat versterk is in Juda gebou, omdat die land rustig was. Daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, want die Here het vir hom rus gegee. Asa het vir Juda gesê: “Laat ons hierdie dorpe opbou, en rondom mure met wagtorings, poortdeure en sluitbalke oprig, terwyl die land nog tot ons beskikking is, omdat ons die Here ons God gesoek het. Ons het Hom gesoek, en Hy het vir ons aan alle kante rus gegee.” Hulle het toe gebou, en hulle was suksesvol. Asa het 'n leër gehad wat grootskilde en steekspiese dra, driehonderdduisend uit Juda, en uit Benjamin tweehonderd-en-tagtigduisend wat die kleinskild dra en die boog span. Hulle almal was dapper krygers. Toe Serag, die Kussiet, teen hulle uitgetrek het met 'n leërmag van 'n miljoen en met driehonderd strydwaens, het hy tot by Maresa gekom. Asa het teen hom uitgetrek, en hulle het gevegslinies opgestel in die vallei van Sefata by Maresa. Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “ Here, niemand is soos U om hulp te verskaf in 'n geveg tussen dié wat baie is en dié wat kragteloos is nie. Help ons, Here ons God, want op U steun ons, en in u Naam kom ons teen hierdie menigte te staan. Here, U is ons God; laat sterflinge nie teen U die oorhand kry nie.” Die Here het die Kussiete voor Asa en Juda uit verslaan en die Kussiete het gevlug. Asa en die manskappe wat by hom was, het hulle agtervolg tot by Gerar. Van die Kussiete het daar soveel gesneuwel dat nie een van hulle oorleef het nie. Ja, hulle is verpletter voor die Here en sy leër. Die Judeërs het 'n baie groot buit geneem. Hulle het al die stede rondom Gerar verslaan, want vrees vir die Here het die mense oorval. Hulle het al die dorpe geplunder, want daar was baie buit daarin. Ook die veekrale het hulle aangeval en groot hoeveelhede kleinvee en kamele weggevoer. Daarna het hulle na Jerusalem teruggekeer. Wat Asarja, seun van Oded betref – die Gees van God het oor hom gekom, en hy het uitgegaan na Asa toe en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die Here is met julle wanneer julle met Hom is. As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 'n Lang tyd het vir Israel verloop sonder die ware God, sonder 'n priester wat onderrig gee en sonder die wet. Maar wanneer Israel in sy nood na die Here, die God van Israel, teruggekeer en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. In daardie tye was dit nie veilig vir iemand om uit te gaan of in te kom nie, want daar was groot paniek by al die bewoners van die lande. Nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle verward laat raak het deur elke moontlike teenspoed. Maar julle, wees dapper en moenie moed verloor nie, want daar is 'n beloning vir julle werk.” Toe Asa hierdie woorde en die profesie hoor wat die profeet Oded uitgespreek het, het hy moed bymekaargeskraap en die verfoeilike gode laat verwyder uit die hele gebied van Juda en Benjamin en uit die dorpe in die heuwelland van Efraim wat hy ingeneem het. Hy het die altaar van die Here wat voor die portaal van die Here se huis was, herstel. Daarna het hy die hele Juda en Benjamin byeengebring, asook die mense uit Efraim en Manasse en Simeon wat tydelike verblyfreg by hulle gehad het; want uit Israel het 'n groot aantal mense na hom oorgeloop toe hulle sien dat die Here sy God met hom was. Hulle het in Jerusalem byeengekom in die derde maand van die vyftiende jaar van Asa se regering. Hulle het daardie dag vir die Here offers geslag uit die buit wat hulle saamgebring het: sewehonderd beeste en seweduisend stuks kleinvee. Hulle het tot die verbond toegetree om die Here, die God van hulle voorouers, met hulle hele hart en siel te soek. Elkeen wat nie die Here, die God van Israel, soek nie, sou doodgemaak word, klein en groot, man en vrou. Hulle het hardop 'n eed aan die Here afgelê, met vreugderoepe en onder die klank van trompette en ramshorings. Die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê, en met volle oorgawe het hulle Hom gesoek. Hy het Hom deur hulle laat vind, en die Here het vir hulle aan alle kante rus gegee. Selfs vir Maäga, grootmoeder van koning Asa, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap, dit fyngestamp en in die Kidrondal verbrand. Die offerhoogtes is egter nie uit Israel verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die Here solank hy geleef het. Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van God ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels. Daar was geen oorlog tot in die vyf-en-dertigste jaar van Asa se regering nie. In die ses-en-dertigste jaar van Asa se regering het Baesa, koning van Israel, teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. Asa neem toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die koninklike paleis, en stuur dit na Ben-Hadad, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: “Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag na die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Majim aangeval, en ook al die voorraadstede van Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en sy werk daar gestaak. Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda saamgeneem, en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het Asa toe Geba en Mispa versterk. In daardie tyd het die siener Ganani na Asa, koning van Juda, gekom en vir hom gesê: “Omdat jy op die koning van Aram en nie op die Here jou God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit jou hand vrygekom. Was die Kussiete en die Libiërs nie 'n groot leërmag met 'n baie groot getal strydwaens en strydwabemanning nie? Maar omdat jy op die Here gesteun het, het Hy hulle in jou hand gegee. Want die Here, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan. Hierin het jy dwaas opgetree, want van nou af sal daar oorloë teen jou wees.” Asa het hom vir die siener vererg en hom in die blok gesit; want hy was onbeheersd kwaad vir hom daaroor. Asa het in dieselfde tyd sommige van die volk mishandel. Kyk, die vroeëre en latere geskiedenis van Asa, is dit nie opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel nie? In die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa 'n voetkwaal ontwikkel. Sy siekte het later ernstig geword. Selfs in sy siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, maar by genesers raad gesoek. Asa het by sy voorouers gaan rus. Hy het in die een-en-veertigste jaar van sy regering gesterf. Hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom uitgekap het in die •Stad van Dawid. Hulle het hom neergelê op 'n baar, vol allerhande speserye, gemeng met die kundigheid van 'n salfmenger. Hulle het vir hom 'n besonder groot dodevuur laat brand. Josafat, sy seun, het in sy plek koning geword. Hy het sy mag versterk teen Israel. Hy het 'n garnisoen in elkeen van die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land van Juda opgestel, en ook in die dorpe van Efraim wat Asa, sy vader, verower het. Die Here was met Josafat, omdat hy die vroeëre paaie van sy voorvader Dawid gevolg het. Hy het nie die Baäls geraadpleeg nie, maar die God van sy vader. Sy gebooie het hy nagevolg, en nie die gebruike van Israel nie. Daarom het die Here die koninkryk in sy hand bestendig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het rykdom en aansien in oorvloed verwerf. Sy hart was opgewonde oor die weë van die Here. Hy het toe ook die offerhoogtes en die asjeras uit Juda verwyder. In die derde jaar van sy regering het hy sy •hoë amptenare Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga uitgestuur om in die dorpe van Juda onderrig te gee. Hulle is vergesel deur Leviete. Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonija, Tobia en Tob-Adonija was die Leviete, en saam met hulle was ook die priesters Elisama en Joram. Hulle het in Juda onderrig gegee. By hulle was die •boekrol met die Wet van die Here. Hulle het rondgegaan in al die dorpe van Juda en die mense geleer. Vrees vir die Here het al die koninkryke van die lande wat rondom Juda lê, oorval, sodat hulle nie teen Josafat oorlog gemaak het nie. Van die Filistyne het vir Josafat belasting, 'n vrag silwer, gebring. Selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend sewehonderd skaapramme en seweduisend sewehonderd bokramme. Josafat het met verloop van tyd buitengewoon magtig geword. Hy het in Juda vestingstede en voorraadstede gebou. Hy het groot voorrade in die dorpe van Juda gehad, en krygsmanne, dapper krygers, in Jerusalem. En dit was hulle monstering volgens hulle families: Vir Juda was daar •aanvoerders oor duisende: die bevelvoerder Adna, en saam met hom 300 000 dapper krygers; langs hom was die aanvoerder Joganan, en saam met hom 280 000; langs hom was Amasja, seun van Sigri, wat as vrywilliger vir die Here aangemeld het, en saam met hom 200 000 dapper krygers. Uit Benjamin was daar: die dapper kryger Eljada, en saam met hom 200 000, gewapen met boë en kleinskilde; langs hom was Josabad, en saam met hom 180 000, gewapen vir oorlog. Hierdie manne was in diens van die koning, naas dié wat die koning in die versterkte stede, in die hele Juda, geplaas het. Josafat het rykdom en aansien in oorvloed verwerf, en toe het hy Agab se aangetroude familie geword. Ná 'n paar jaar het hy na Agab in Samaria afgegaan. Agab het vir hom en die manskappe by hom kleinvee en beeste in oorvloed geslag, en hom mislei om teen Ramot in Gilead op te trek. Agab, die koning van Israel, vra toe vir Josafat, die koning van Juda: “Sal jy saam met my na Ramot in Gilead gaan?” Josafat het hom geantwoord: “Ek is soos jy, en my manskappe is asof dit jou manskappe is, saam met jou in die stryd.” Josafat sê toe vir die koning van Israel: “Raadpleeg net eers die woord van die Here. ” Die koning van Israel het toe die profete, vierhonderd man, byeengebring en vir hulle gevra: “Moet ons na Ramot in Gilead optrek vir die geveg, of moet ek daarvan afsien?” Hulle antwoord was: “Trek op! God sal dit in die hand van die koning gee.” Toe vra Josafat: “Is hier nie nog 'n profeet van die Here nie, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg?” Die koning van Israel het Josafat geantwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg. Maar ek, ek het 'n weersin in hom, want hy profeteer niks goeds oor my nie, net altyd onheil. Dit is Miga, seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so sê nie.” Die koning van Israel ontbied toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga, seun van Jimla.” Terwyl die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, elkeen op sy troon gesit het, geklee in koninklike drag, op 'n dorsvloer by die ingang van die stadspoort van Samaria, het al die profete voor hulle vurig geprofeteer. Sedekia, seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: “So sê die Here, ‘Hiermee gaan u die Arameërs gaffel totdat hulle vernietig is.’ ” Al die ander profete was besig om dieselfde te profeteer en het gesê: “As u optrek na Ramot in Gilead, sal u sukses behaal. Die Here sal dit in die hand van die koning gee.” Die boodskapper wat gegaan het om Miga te ontbied, het vir hom gesê: “Kyk, die woorde van die profete is, asof uit een mond, gunstig vir die koning. Laat jou woorde asseblief wees soos een van hulle se woorde. Voorspel iets goeds!” Maar Miga het geantwoord: “So waar as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek oordra.” Toe hy by die koning aankom, sê die koning vir hom: “Miga, moet ons na Ramot in Gilead gaan vir die geveg of moet ek daarvan afsien?” Hy antwoord hom toe: “As julle optrek, sal julle sukses behaal. Hulle sal in julle hand gegee word.” Daarop sê die koning vir hom: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy in die Naam van die Here met my niks anders as die waarheid sal praat nie?” Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel gesien, uitmekaar gedryf op die berge soos 'n kudde wat nie 'n herder het nie. Die Here het gesê, ‘Hierdie mense het geen gesagvoerder nie. Laat elkeen van hulle in vrede terugkeer na sy huis.’ ” Daarop sê die koning van Israel vir Josafat: “Het ek dit nie vir jou gesê nie? Hy profeteer oor my niks goeds nie, net onheil.” Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die Here! Ek het die Here sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. Toe sê die Here, ‘Wie sal Agab, die koning van Israel, mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ ” Verder sê Miga: “Die een het dit voorgestel en die ander dat. 'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die Here en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die Here vir hom, ‘Hoe?’ Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die Here, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ Daarom, kyk, die Here het 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u geplaas. Die Here self het onheil teen u gelas.” Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Op watter manier het die Gees van die Here dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” Maar Miga het gesê: “Kyk, jy gaan dit ervaar op daardie dag wanneer jy van een binnekamer na die ander gaan om weg te kruip.” Toe sê die koning van Israel: “Neem Miga en laat hom teruggaan na Amon, die stadsbestuurder, en Joas, die seun van die koning, en sê, ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis, en gee hom 'n karige rantsoen brood en water totdat ek ongedeerd terugkom. ” ’ ” Maar Miga het gesê: “As u wel ongedeerd terugkom, het die Here nie deur my gespreek nie.” Hy sê toe ook nog: “Mense, luister, almal van julle!” Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan. Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep, en die Here het hom te hulp gekom. God het hulle van hom af weggelok. En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai. Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning van Israel het hom teenoor die Arameërs tot die aand toe staande gehou op sy strydwa. Teen sononder het hy gesterf. Josafat, die koning van Juda, het ongedeerd na sy paleis in Jerusalem teruggekeer. Die siener Jehu, seun van Ganani, het uitgegaan, en in sy gesig vir koning Josafat gesê: “Moes jy nou die goddelose help, en dié wat die Here haat, liefhê? Om hierdie rede sal 'n oordeel uit toorn van die Here af, teen jou losbreek. Tog is daar by jou goeie dinge gevind, want jy het die asjeras uit die land uitgeroei en jou hart daarop gerig om God te soek.” Josafat het in Jerusalem gewoon, maar het weer uitgegaan tussen die mense, van Berseba af tot in die heuwelland van Efraim. Hy het hulle laat terugdraai na die Here, die God van hulle voorouers. Hy het regters aangestel in die land, in al die versterkte stede van Juda, stad vir stad. Hy het vir die regters gesê: “Julle moet besef wat julle besig is om te doen, want julle spreek nie reg vir mense nie, maar vir die Here. Hy staan julle by in die regspraak. Daarom, laat vrees vir die Here julle lei. Tree nougeset op, want by die Here ons God is daar geen onreg, partydigheid of aanvaarding van omkoopgeskenke nie.” Ook in Jerusalem het Josafat van die Leviete, priesters en familiehoofde van Israel aangestel vir sake wat betrekking het op die wet van die Here, en vir gewone regsgeskille. Hulle het in Jerusalem gewoon. Hy het hulle beveel: “So moet julle optree: met ontsag vir die Here, met betroubaarheid en met onverdeelde harte. In enige regsaak wat voor julle kom, afkomstig van julle volksgenote wat in hulle dorpe woon, moet julle hulle waarsku, sodat hulle nie voor die Here skuldig staan nie – of dit nou gaan oor bloedwraak, of 'n beslissing in verband met 'n gebod, voorskrifte en bepalings – en daar dan nie 'n oordeel uit toorn teen julle en julle volksgenote losbreek nie. Julle moet so optree dat julle nie skuldig staan nie. Kyk, die hoofpriester Amarja is oor julle aangestel vir enige saak met betrekking tot die Here, en Sebadja, seun van Ismael, die leier van die huis van Juda, vir enige saak wat betrekking het op die koning. As opsieners is die Leviete tot julle beskikking. Wees onwrikbaar in julle optrede; en mag die Here met die goeies wees!” 'n Tyd daarna het die Moabiete en Ammoniete, en saam met hulle van die Meüniete, teen Josafat opgetrek om oorlog te voer. Mense het gekom en Josafat ingelig: “'n Groot menigte trek teen u op van anderkant die see, van Aram se kant af. Kyk, hulle is al by Gaseson-Tamar. ” Gaseson-Tamar is En-Gedi. Josafat was bang, en hy was vasbeslote om die Here te raadpleeg. Hy het 'n vasdag uitgeroep oor die hele Juda. Juda het toe byeengekom om by die Here hulp te soek; ja, uit al die dorpe van Juda het hulle gekom om die Here te soek. Josafat het in die byeenkoms van Juda en Jerusalem, in die huis van die Here, voor die nuwe binneplein gestaan en gesê: “ Here, God van ons voorouers, is U nie 'n God wat in die hemel is nie? U heers oor al die koninkryke van die nasies. In u hand is krag en mag, en niemand kan teen U standhou nie. Is dit nie U, ons God, wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf het en dit vir ewig aan die nageslag van u vriend Abraham gegee het nie? Hulle het daarin gaan woon en vir U daarin 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, en gesê, ‘As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’ Maar nou, hier is die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge. U het Israel, toe hulle uit Egipteland op pad was, nie toegelaat om naby hulle te kom nie. Ja, Israel het van hulle af weggedraai en hulle nie vernietig nie. En kyk hoe vergoed hulle ons – hulle kom en verdryf ons uit u eiendom wat U aan ons as besitting gegee het. Ons God, sal U hulle dan nie oordeel nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, teen te staan nie. Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig. ” Die hele Juda het voor die Here gestaan, selfs hulle kleuters, hulle vroue en kinders. Jagasiël, seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, 'n Leviet uit die nageslag van Asaf, oor hom het die Gees van die Here midde-in die byeenkoms gekom, en hy het gesê: “Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die Here vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s'n. Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die Here wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees. ’ ” Toe kniel Josafat met sy gesig na die grond. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die Here neergeval om voor die Here in aanbidding te buig. Die Leviete uit die nageslag van Kehat en die nageslag van Korag het opgestaan om die Here, die God van Israel, met baie harde stemme te loof. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Vertrou op die Here julle God, dan bly julle behoue; vertrou op sy profete, dan behaal julle sukses.” Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die Here aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die Here, want vir ewig duur sy troue liefde!” Die oomblik toe hulle met 'n jubelkreet 'n loflied begin sing, het die Here 'n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig. En Juda, toe hulle by die uitkykpos in die woestyn kom en rondsoek na die menigte, kyk, toe lê daar net lyke op die grond, niemand het ontkom nie. Josafat en sy manskappe het gegaan om oorlogsbuit bymekaar te maak. Hulle kry toe groot hoeveelhede toerusting en klere, sowel as waardevolle artikels by hulle. Hulle het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle was drie dae lank besig om oorlogsbuit bymekaar te maak, want daar was baie. Op die vierde dag het hulle in die Berakavallei byeengekom; ja, daar het hulle die Here geprys. Daarom word daardie plek Vallei van Lofprysing genoem; dit is vandag nog so. Al die manne van Juda en Jerusalem het, met Josafat aan die voorpunt, omgedraai om vol vreugde na Jerusalem terug te keer, omdat die Here hulle bly gemaak het oor hulle vyande. Hulle het Jerusalem binnegegaan met harpe, liere en trompette, op pad na die huis van die Here. Vrees vir God het al die koninkryke van die lande oorval toe hulle hoor dat die Here teen Israel se vyande geveg het. Josafat se koninkryk het rus gehad, want sy God het vir hom aan alle kante rus gegee. Josafat het oor Juda regeer. Hy was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Asuba, dogter van Silgi. Hy het die pad van sy vader Asa gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie en gedoen wat reg is in die oë van die Here. Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Die volk het steeds nie hulle harte gerig op die God van hulle voorouers nie. Die verdere geskiedenis van Josafat, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van Jehu, seun van Ganani, wat opgeneem is in die boekrol van die konings van Israel. Later het Josafat, die koning van Juda, 'n ooreenkoms gesluit met Ahasia, die koning van Israel. Daardie man het goddeloos opgetree. Josafat het met hom 'n ooreenkoms gesluit vir die bou van skepe om na Tarsis te vaar. Hulle het die skepe in Es-jon-Geber gebou. Toe het Eliëser, seun van Dodawa, uit Maresa teen Josafat geprofeteer en gesê: “Omdat jy 'n ooreenkoms gesluit het met Ahasia, sal die Here jou onderneming laat misluk.” Die skepe het vergaan; hulle kon nie na Tarsis vaar nie. Josafat het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid. Sy seun Jehoram het in sy plek koning geword. Jehoram het broers gehad, die seuns van Josafat. Dit was Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarjahu, Migael en Sefatja; hulle almal was seuns van Josafat, koning van Israel. Hulle vader het vir hulle baie geskenke gegee: silwer, goud en ander kosbaarhede, en daarby nog stede wat versterk is in Juda. Die koningskap het hy egter vir Jehoram gegee, omdat hy die eersgeborene was. Jehoram het beheer geneem oor die koninkryk van sy vader en sy posisie verstewig. Toe het hy al sy broers met die swaard omgebring, asook sommige van die leiers van Israel. Jehoram was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het die pad van die konings van Israel gevolg, soos die huis van Agab gedoen het, want Agab se dogter was sy vrou. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Maar ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gemaak het, wou die Here die huis van Dawid nie vernietig nie, aangesien Hy beloof het om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee. In die tyd van Jehoram het die Edomiete weggebreek van die gesag van Juda en 'n koning oor hulle aangestel. Jehoram het toe met sy bevelvoerders en al sy strydwaens by hom daarheen oorgetrek. Hy het in die nag gereedgemaak en die Edomiete wat hom en die •aanvoerders van die strydwamag omsingel het, verslaan. Die Edomiete het weggebreek van die gesag van Juda; dit is vandag nog so. In dieselfde tyd het Libna ook van hom weggebreek, omdat Jehoram die Here, die God van sy voorouers, verlaat het. Hy het ook offerhoogtes op die berge van Juda opgerig, die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf en Juda so laat afdwaal. Daar het toe van die profeet Elia 'n skrywe by hom aangekom wat lui: “So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid, ‘Omdat jy nie die paaie van Josafat, jou vader, en die paaie van Asa, die koning van Juda, gevolg het nie, maar die pad van die konings van Israel gevolg het, en Juda en die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf het soos wat die huis van Agab gedoen het, en omdat jy ook jou broers, jou eie familie wat beter was as jy, vermoor het, kyk, daarom sal die Here jou volk, jou seuns, jou vroue en al jou besittings tref met 'n groot plaag. Jy sal ernstige siektes opdoen, siekte van jou ingewande, totdat jou ingewande met verloop van tyd as gevolg van die siekte sal uitpeul.’ ” Toe het die Here die gees van die Filistyne en die Arabiere, wat langs die Kussiete woon, teen Jehoram aangevuur. Hulle het teen Juda opgetrek, deurgebreek en al die besittings weggevoer wat in die koninklike paleis te vinde was, selfs sy seuns en sy vroue. Vir hom het daar nie 'n seun oorgebly nie, behalwe Joahas, die jongste van sy seuns. Ná al hierdie gebeure het die Here hom in sy ingewande getref met 'n ongeneeslike siekte. Ná verloop van tyd, ongeveer aan die einde van twee jaar, het sy ingewande uitgepeul as gevolg van sy siekte. Hy het 'n baie pynlike dood gesterf. Sy volk het geen dodevuur vir hom gemaak soos die dodevure vir sy voorvaders nie. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het heengegaan sonder kosbaarhede. Hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie. Die inwoners van Jerusalem het Ahasia, Jehoram se jongste seun, in sy plek koning gemaak, want al die ouer seuns is doodgemaak deur die rowerbende wat saam met die Arabiere die kamp binnegekom het. So het Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, koning geword. Ahasia was twee-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Atalia, kleindogter van Omri. Ook hy het die paaie van die huis van Agab gevolg deur goddeloos op te tree – sy moeder was immers sy raadgewer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die huis van Agab, want hulle was sy raadgewers ná die dood van sy vader, tot sy eie ondergang. Hy het ook hulle raad gevolg en saam met Joram, seun van Agab, koning van Israel, gegaan vir die geveg teen Gasael, koning van Aram, by Ramot in Gilead. Die Arameërs het Joram toe gewond, en hy het teruggekeer om in Jisreël te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom toegedien het by Rama, toe hy teen Gasael, koning van Aram, geveg het. Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, het toe afgegaan om Joram, seun van Agab, in Jisreël te besoek, omdat hy siek was. Van God se kant af was dit 'n beskikking oor Ahasia om by Joram uit te kom. Met sy aankoms het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, seun van Nimsi, vir wie die Here gesalf het om die huis van Agab uit te roei. Pas nadat Jehu die oordeel oor die huis van Agab voltrek het, het hy afgekom op die leiers van Juda en die seuns van Ahasia se broers wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle toe om die lewe gebring. Daarna het hy na Ahasia gesoek. Hulle het hom gevange geneem terwyl hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu gebring en hom doodgemaak. Hulle het hom begrawe, want hulle het gesê: “Hy is 'n kleinseun van Josafat, wat die Here met sy hele hart gesoek het.” Die huis van Ahasia het toe niemand gehad wat opgewasse vir die koningskap was nie. Toe Atalia, Ahasia se moeder, sien dat haar seun dood is, het sy daartoe oorgegaan om die hele koninklike geslag van die huis van Juda om die lewe te bring. Jehosabat, 'n dogter van die koning, het egter vir Jehoas, seun van Ahasia, geneem, hom gesteel tussen die koning se seuns uit wat doodgemaak sou word, en hom en sy oppasser in 'n slaapkamer gehou. Jehosabat, 'n dogter van koning Jehoram en vrou van die priester Jojada, het hom weggesteek vir Atalia, sodat hy nie doodgemaak is nie. Sy was immers die suster van Ahasia. Saam met haar is hy ses jaar lank versteek in die huis van God terwyl Atalia oor die land regeer het. In die sewende jaar het Jojada moed bymekaargeskraap en die •aanvoerders van honderd, Asarja, seun van Jerogam, Ismael, seun van Joganan, Asarja, seun van Obed, Maäseja, seun van Adaja, en Elisafat, seun van Sigri, betrek om met hom 'n ooreenkoms aan te gaan. Hulle het in Juda rondgegaan en die Leviete byeengebring uit al die dorpe van Juda, en ook die familiehoofde van Israel. Hulle het in Jerusalem aangekom, en die hele geloofsgemeenskap het in die huis van God 'n verbond gesluit met die koning. Jojada het vir hulle gesê: “Kyk, 'n seun van die koning moet, soos die Here beloof het, regeer oor die nageslag van Dawid. Dit is wat julle moet doen: 'n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, naamlik die priesters en Leviete, moet by die drumpels wagstaan, 'n derde by die koninklike paleis, en 'n derde by die Fondamentpoort. Die hele volk moet in die voorhowe van die huis van die Here wees. Niemand mag die huis van die Here binnegaan nie, behalwe die priesters en diegene van die Leviete wat diens doen. Net hulle mag ingaan, omdat hulle gewy is. Die hele volk moet egter die verpligtinge teenoor die Here nakom. Die Leviete moet reg rondom die koning stelling inneem, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigeen wat die •tempel binnegaan, moet doodgemaak word. Julle moet by die koning wees wanneer hy ingaan en uitgaan.” Die Leviete en die hele Juda het gemaak net soos die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat aan diens was op die Sabbat en dié wat van diens af was op die Sabbat, want die priester Jojada het nie die afdelings afgegee nie. Die priester Jojada het vir die aanvoerders van honderd die vegspiese, kleinskilde en ook rondeskilde wat aan koning Dawid behoort het, en in die huis van God was, gegee. Hy het al die manskappe, elkeen met sy wapen in sy hand, vanaf die regterkant van die tempel tot aan die linkerkant van die tempel laat staan, voor die altaar en voor die tempelgebou, rondom die koning. Toe bring hulle die seun van die koning uit en plaas die kroon en koninklike simbole op hom. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en uitgeroep: “Lank lewe die koning!” Toe Atalia die uitroepe hoor van die volk wat naderhardloop en die koning se lof besing, het sy na die volk in die huis van die Here gegaan. Sy sien toe, sowaar, daar staan die koning by sy pilaar by die ingang, en die aanvoerders met die trompette is by die koning, terwyl die hele volk van die land verheug is, op trompette blaas, en die sangers met musiekinstrumente voorgaan in die lofprysing. Toe skeur Atalia haar klere en roep uit: “Verraad! Verraad!” Die priester Jojada het toe aanvoerders van honderd, die bevelvoerders van die leër, laat uitgaan en vir hulle gesê: “Neem haar buite die kordon. Dié wat haar volg, moet met die swaard doodgemaak word.” Ja, die priester het gesê: “Julle mag haar nie in die huis van die Here doodmaak nie.” Hulle het haar beetgepak, en toe sy die ingang van die Perdepoort by die koninklike paleis bereik, is sy daar doodgemaak. Jojada het 'n verbond gesluit tussen homself, die hele volk en die koning dat hulle die volk van die Here sal wees. Die hele volk van die land het toe die tempel van Baäl binnegegaan en dit afgebreek. Sy altare en sy beelde het hulle stukkend gebreek, en vir Mattan, die priester van Baäl, het hulle voor die altare doodgemaak. Jojada het die toesig oor die huis van die Here in die hande van die Levitiese priesters gelaat, dié wat Dawid ingedeel het by die huis van die Here om •brandoffers vir die Here te bring, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, en “met vreugderoepe en sang”, soos aangewys deur Dawid. Jojada het die poortwagte laat aantree by die poorte van die huis van die Here, sodat niemand wat in enige opsig •onrein was, kon ingaan nie. Hy het die aanvoerders van honderd, die magtiges, die heersers onder die volk en die hele volk van die land geneem en die koning uit die huis van die Here afgebring. Hulle het die koninklike paleis deur die Boonste Poort binnegegaan en die koning op die koninklike troon laat plaasneem. Die hele volk van die land was verheug, en die stad was rustig, al het hulle Atalia met die swaard doodgemaak. Jehoas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sibja, uit Berseba. Jehoas het gedoen wat reg is in die oë van die Here solank as wat die priester Jojada geleef het. Jojada het vir Jehoas twee vroue gekies, en hy het seuns en dogters verwek. 'n Tyd daarna het Jehoas hom voorgeneem om die huis van die Here op te knap. Hy het die priesters en Leviete byeengebring en vir hulle gesê: “Gaan uit na die dorpe van Juda en samel geld in by die hele Israel vir die jaarlikse herstelwerk aan die huis van julle God. Julle moet die saak vinnig afhandel.” Die Leviete het egter nie vinnig opgetree nie. Die koning ontbied toe die hoëpriester Jojada, en sê vir hom: “Waarom het jy nie by die Leviete daarop aangedring om uit Juda en Jerusalem die heffing vir die tent met die Getuienis in te vorder nie, soos ingestel deur Moses, die dienskneg van die Here, en deur die geloofsgemeenskap van Israel? Want die goddelose Atalia – dit was haar seuns wat by die huis van God ingebreek en selfs al die •heilige gawes van die huis van die Here vir die Baäls gebruik het.” Die koning het toe opdrag gegee, en hulle het 'n kis gemaak en dit buite by die poort van die huis van die Here neergesit. 'n Oproep is in Juda en Jerusalem gemaak om vir die Here die heffing te bring wat Moses, die dienskneg van God, Israel in die woestyn opgelê het. Al die leiers en die hele volk was verheug. Hulle het dit gebring en in die kis gegooi, totdat dit vol was. Telkens wanneer die kis, onder beheer van die Leviete, na die toesighouer van die koning gebring is, en hulle sien dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en die verteenwoordiger van die hoëpriester gekom, die kis leeggemaak, dit opgetel en weer teruggeneem na sy plek. So het hulle dag ná dag gemaak en baie geld ingesamel. Die koning en Jojada het dit gegee aan hulle wat die dienswerk in die huis van die Here moes uitvoer. Hulle het dan klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die Here op te knap, ook bewerkers van yster en brons, om die huis van die Here te herstel. Die werksmanne het gewerk, en die herstelwerk het in hulle hande goed gevorder. Hulle het die huis van God opgebou tot sy oorspronklike ontwerp en dit versterk. Toe hulle klaar was met die werk, het hulle die res van die geld voor die koning en Jojada gebring. Hy het daarvan gereedskap gemaak vir die huis van die Here: gereedskap vir die dienswerk en die •brandoffers, bakke en ander goue en silwergereedskap. Hulle het gereeld brandoffers gebring in die huis van die Here, solank Jojada geleef het. Jojada het oud geword, en ná 'n vol lewe het hy gesterf. Hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het. Hulle het hom begrawe in die Stad van Dawid, by die konings, omdat hy goed gedoen het in Israel, ook met betrekking tot God en sy •tempel. Ná die dood van Jojada het die leiers van Juda gekom en diep voor die koning neergebuig; toe het die koning na hulle geluister. Hulle het die huis van die Here, die God van hulle voorouers, verlaat, en die asjeras en afgodsbeelde gedien. Toe het 'n oordeel uit toorn Juda en Jerusalem getref oor hierdie skuldlas van hulle. Die Here het profete onder hulle ingestuur om hulle na Hom te laat terugkeer. Die profete het hulle tereggewys, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het toe van Sagaria, seun van die priester Jojada, besit geneem. Hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God, ‘Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat.’ ” Hulle het egter 'n komplot teen Sagaria gesmee en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here. Koning Jehoas het nie die troue liefde onthou wat Sagaria se vader, Jojada, aan hom betoon het nie, en het sy seun vermoor. Toe hy sterf, het hy gesê: “Mag die Here dit sien en rekenskap eis.” Teen die wending van die jaar het die leër van die Arameërs teen hom opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die bevelvoerders van die volk uit die geledere van die volk uitgewis, en al die buit wat hulle gemaak het, na die koning van Damaskus gestuur. Alhoewel die leër van die Arameërs met 'n klein getal manne gekom het, het die Here 'n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat Juda die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het. Hulle het die straf oor Jehoas voltrek. Toe hulle van hom weggetrek het – ja, hulle het hom ernstig gewond agtergelaat – het sy amptenare teen hom 'n komplot gesmee oor die bloed van die seun van Jojada, die priester. Hulle het hom op sy bed om die lewe gebring – so het hy gesterf. Hy is in die Stad van Dawid begrawe, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie. Dit was die manne wat teen hom 'n komplot gesmee het: Sabad, seun van Simeat die Ammoniet, en Josabad, seun van Simriet die Moabiet. Wat sy nageslag betref, die talle profesieë teen hom, en die instandhouding van die huis van God, kyk, dit is opgeteken in die aantekeninge in die boekrol van die konings. Sy seun Amasia het in sy plek koning geword. Amasia was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jehoaddan, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heelhartig nie. Toe die koninkryk gevestig was onder sy beheer, het hy sy amptenare tereggestel – dié wat sy vader, die koning, vermoor het. Hulle seuns het hy egter nie doodgemaak nie, want so staan dit geskryf in die wet, in die •boekrol van Moses, waar die Here beveel: “Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterf.” Amasia het Juda byeen laat kom en hulle volgens die families van die hele Juda en Benjamin laat aantree onder •aanvoerders van duisend en van honderd. Hy het hulle gemonster, van twintig jaar en ouer, en vasgestel dat hulle driehonderdduisend was, uitgesoektes, weerbare manne, gewapen met steekspies en grootskild. Hy het ook uit Israel honderdduisend dapper krygers gehuur vir honderd kikkar silwer. 'n Man van God het egter na hom gekom en vir hom gesê: “Koning, die leër van Israel moet nie saam met u gaan nie, want die Here is nie by Israel, by al die Efraimiete, nie. Maar gaan self, tree op, staal jou vir die geveg! God kan u laat val voor 'n vyand, want by God is daar die krag om te help of om te laat val.” Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat van die honderd kikkar wat ek vir die troepe van Israel gegee het?” Die man van God het geantwoord: “Die Here het die vermoë om vir jou baie meer as dit te gee.” Amasia het hulle, die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, onttrek om weer na hulle eie plek te gaan. Hulle was baie kwaad vir Juda, en het briesend kwaad na hulle eie plek teruggekeer. Amasia het egter moed bymekaargeskraap en sy manskappe gelei. Hy het na die Soutvallei gegaan en die mense van Seïr neergevel, tienduisend van hulle. Tienduisend van hulle is lewendig gevang deur die Judeërs. Hulle het hulle na die bopunt van 'n rots geneem en hulle van die bopunt van die rots afgegooi. Hulle almal het hulle te pletter geval. Die troepe wat Amasia teruggestuur het, sodat hulle nie saam met hom na die geveg sou gaan nie, het 'n aanval geloods op die dorpe van Juda – van Samaria tot by Bet-Goron. Hulle het drieduisend van die mense neergevel en 'n groot buit geneem. Nadat Amasia tuisgekom het van die aanval op die Edomiete, het hy die gode van die mense van Seïr laat bring en dit vir hom as gode opgestel. Voor hulle het hy in aanbidding gebuig, en vir hulle het hy offers verbrand. Die toorn van die Here het teen Amasia ontbrand en Hy het 'n profeet na hom gestuur. Hy het vir hom gesê: “Hoekom raadpleeg u die gode van 'n volk wat nie hulle volk uit u hand kon red nie?” Maar terwyl hy nog met hom praat, sê Amasia vir hom: “Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op! Waarom moet hulle jou neervel?” Die profeet het toe opgehou, maar tog gesê: “Ek weet dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.” Amasia, koning van Juda, het ná raadpleging boodskappers gestuur na die koning van Israel, Joas, seun van Joagas, seun van Jehu, om vir hom te sê: “Kom ons kyk mekaar in die oë. ” Maar Joas, koning van Israel, het vir Amasia, koning van Juda, laat weet: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap. Jy sê, ‘Kyk, ek het die Edomiete 'n nederlaag toegedien!’ Jou hart is opgetoë, op eer gerig. Bly nou tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?” Amasia het egter nie geluister nie, want dit het van God gekom, met die doel dat hulle in Joas se hand oorgegee sou word, omdat hulle die gode van Edom geraadpleeg het. Joas, koning van Israel, trek toe op en hy en Amasia, koning van Juda, het mekaar in die oë gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort. Maar Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. En Joas, koning van Israel, het die koning van Juda, Amasia, seun van Jehoas, seun van Joahas, in Bet-Semes gevange geneem en na Jerusalem gebring. Hy het die stadsmuur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort – vierhonderd el. Al die goud en silwer, en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, asook die skatte in die koninklike paleis en die gyselaars, het hy geneem en teruggekeer na Samaria. Amasia, seun van Jehoas, koning van Juda, het ná die dood van Joas, seun van Joagas, koning van Israel, nog vyftien jaar lank geleef. Die verdere geskiedenis van Amasia, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, is dit nie opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel nie? Van die tyd af dat Amasia van die Here weggedraai het, is daar in Jerusalem 'n komplot teen hom gesmee. Hy het na Lagis gevlug, maar hulle het manne agter hom aan gestuur na Lagis, en dié het hom daar doodgemaak. Hulle het hom op perde vervoer, en hom by sy voorouers begrawe in die •Stad van Dawid. Die hele volk van Juda het toe vir Ussia – hy was sestien jaar oud – geneem en hom koning gemaak in die plek van sy vader, Amasia. Hy is die een wat Elat herbou en teruggebring het onder Juda se beheer nadat die koning by sy voorouers gaan rus het. Ussia was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jegolja, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Amasia gedoen het. Hy het God altyd gesoek in die tyd van Sagaria, die een wat hom insig gegee het in ontsag vir God. So lank as wat hy die Here gesoek het, het God hom sukses laat behaal. Hy het uitgetrek, teen die Filistyne geveg, en bresse geslaan in die stadsmure van Gat, Jabne en Asdod. Hy het dorpe gebou by Asdod en tussen die Filistyne. God het hom gehelp teen die Filistyne, die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Die Ammoniete moes aan Ussia belasting betaal. Sy roem het so ver as die grens van Egipte gestrek, want hy het baie magtig geword. Ussia het wagtorings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die Hoek; en hy het dit versterk. Hy het wagtorings in die woestyn gebou en baie opgaarputte gegrawe, want hy het baie vee gehad in sowel die Sjefela as op die vlakte. Hy het plaaswerkers en wingerdwerkers in die bergland en op vrugbare grond gehad, want hy was lief vir landbou. Ussia het 'n leër gehad wat oorlog kon voer, wat as troepe op 'n veldtog kon uittrek, ooreenkomstig die getal van hulle monstering deur Jeïel, die sekretaris, en Maäseja, die opsiener onder bevel van Gananja, een van die koning se bevelvoerders. Die volle getal van die familiehoofde, van die dapper krygers, was tweeduisend seshonderd. Onder hulle bevel was daar 'n leër van driehonderd-en-seweduisend vyfhonderd wat met groot slaankrag oorlog kon voer om die koning by te staan teen die vyand. Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was. Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die Here sy God en het die •tempel van die Here binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk. Die priester Asarja het hom na binne gevolg. Saam met hom was daar tagtig priesters van die Here, onverskrokke manne. Hulle het Ussia, die koning, teengestaan en vir hom gesê: “Dit is nie vir u, Ussia, beskore om reukwerk te laat brand vir die Here nie, maar vir die priesters, die nageslag van Aäron, wat geheilig is om reukwerk te laat brand. Gaan uit die heiligdom uit, want u was ontrou! Dit sal u nie tot eer strek by die Here God nie.” Ussia was onbeheersd kwaad. Terwyl hy met die pan met reukwerk in sy hand, gereed om reukwerk te laat brand, sy onbeheersde woede op die priesters uithaal, het 'n velsiekte daar voor die priesters, langs die altaar vir die reukwerk in die huis van die Here, op sy voorkop uitgeslaan. Toe Asarja, die hoëpriester, en al die priesters na hom draai, het hy sowaar 'n velsiekte op sy voorkop! Hulle het hom inderhaas daar verwyder. Hy was self ook haastig om uit te gaan, omdat die Here hom getref het. Koning Ussia het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, want hy was verban uit die huis van die Here. Jotam, sy seun, het beheer gehad oor die koninklike paleis en het reg gespreek oor die volk van die land. Die verdere geskiedenis van Ussia, die vroeëre en latere geskiedenis, het die profeet Jesaja, seun van Amos, opgeteken. Ussia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom by sy voorouers begrawe in die veld by die graf wat aan die konings behoort, want hulle het gesê: “Hy het 'n velsiekte.” Sy seun Jotam het in sy plek koning geword. Jotam was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jerusa, dogter van Sadok. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Ussia gedoen het – hy het net nie die •tempel van die Here binnegegaan nie. Die volk het hulle egter steeds wangedra. Dit is hy wat die boonste poort van die huis van die Here gebou het. Aan die muur by die Ofel het hy baie bouwerk gedoen. Dorpe is deur hom in die bergland van Juda gebou, en in die beboste gebied het hy vestingstede en wagtorings gebou. Hy is ook die een wat teen die koning van die Ammoniete geveg en hulle oorweldig het. Die Ammoniete het daardie jaar vir hom 'n honderd kikkar silwer, tienduisend kor koring en tienduisend kor gars gegee. Dieselfde hoeveelheid het die Ammoniete ook in die tweede en derde jaar aan hom gelewer. Jotam het sy mag stewig gevestig, want hy het sy pad koersvas geloop voor die Here sy God. Die verdere geskiedenis van Jotam, al sy oorloë en ondernemings, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Jotam het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die •Stad van Dawid begrawe. Agas, sy seun, het in sy plek koning geword. Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die paaie van die konings van Israel gevolg, en selfs gegote beelde gemaak vir die Baäls. Hy is die een wat offers verbrand het in die Ben-Hinnomdal, en sy seuns in die vuur verbrand het, soos die afstootlike gebruike was van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het. Hy het geslag en offers verbrand by die offerhoogtes, op die heuwels en onder elke skaduryke boom. Die Here sy God het hom toe oorgegee in die hand van die koning van Aram. Hulle het hom verslaan, en 'n groot aantal van hulle as gevangenes weggevoer en na Damaskus geneem. Ook in die hand van die koning van Israel is hy oorgegee, en dié het hom 'n groot nederlaag toegedien. Peka, seun van Remalja, het in Juda op een dag honderd-en-twintigduisend doodgemaak, almal onverskrokke manne, omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het. Sigri, 'n held uit Efraim, het Maäseja, die seun van die koning, en Asrikam, hofmeester van die paleis, en Elkana, die tweede in bevel onder die koning, doodgemaak. Die Israeliete het tweehonderdduisend vroue, seuns en dogters van hulle volksgenote as gevangenes weggevoer. Ook oorlogsbuit het hulle in oorvloed van hulle geroof en dit na Samaria geneem. In Samaria was daar 'n profeet van die Here; sy naam was Oded. Hy het uitgegaan, die leër wat op pad was na Samaria tegemoetgeloop, en vir hulle gesê: “Kyk, vanweë die woede van die Here, die God van julle voorouers, oor Juda, het Hy hulle in julle hand gegee; en julle het van hulle doodgemaak met 'n onbeheersde woede wat ten hemel skrei. En nou dink julle daaraan om sowaar die mense van Juda en Jerusalem as slawe en slavinne aan julle te onderwerp. Is dit dan net julle by wie daar nie sondeskuld teenoor die Here julle God is nie? Luister nou na my! Stuur die gevangenes wat julle van julle volksgenote geneem het, terug, want die brandende toorn van die Here rus op julle.” Sommige hoofde van die Efraimiete, Asarja, seun van Joganan, Beregja, seun van Mesillemot, Hiskia, seun van Sallum, en Amasa, seun van Gadlai, het standpunt ingeneem teen dié wat van die militêre veldtog af daar aangekom het, en vir hulle gesê: “Julle mag nie die gevangenes hierheen bring nie, want dit sal vir ons net skuld teenoor die Here bring. Wat julle beoog, sal net dien om ons sonde en skuld nog meer te maak, en dit terwyl ons skuldlas al so groot is, en daar 'n brandende toorn op Israel rus.” Die gewapende manne het toe in die teenwoordigheid van die •aanvoerders en die hele strydmag afstand gedoen van die gevangenes en die buit. Die manne wat vroeër by die naam genoem is, het opgestaan, die gevangenes geneem, en almal wat kaal was, aangetrek met wat in die buit was. Hulle het hulle aangetrek en vir hulle skoene gegee, hulle laat eet en drink, hulle met olie versorg en hulle op donkies vervoer – almal wat strompelend geloop het – en hulle na Jerigo, die Palmstad, tot by hulle volksgenote geneem. Toe het hulle teruggekeer na Samaria. In daardie tyd het koning Agas die hulp ingeroep van die konings van Assirië. Weer het Edomiete die land binnegeval, Juda aangeval en gevangenes weggevoer, en Filistyne het 'n aanval geloods op die dorpe van die Sjefela en die Negev van Juda. Hulle het Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Sogo met sy omliggende dorpies, Timna met sy omliggende dorpies en Gimso met sy omliggende dorpies ingeneem en daar gaan woon. Ja, die Here het Juda verneder as gevolg van Agas, koning van Israel, omdat hy Juda losbandig gemaak het en uiters ontrou was teenoor die Here. Tiglat-Pilneser, koning van Assirië, het teen hom opgetrek, hom in die noute gebring en hom nie bygestaan nie. Alhoewel Agas die huis van die Here, die koninklike paleis en die huise van die •hoë amptenare gestroop en dit vir die koning van Assirië gegee het, het dit hom niks gehelp nie. In die tyd toe hy in die noute was, was hy, koning Agas, selfs meer ontrou aan die Here. Hy het offers geslag vir die gode van Damaskus, hulle wat hom verslaan het. Hy het gedink: Omdat die gode van die konings van Aram hulle help, sal ek vir hulle offers slag, sodat hulle my kan help. Maar dit was juis hulle wat sy ondergang bewerk het, en so ook dié van die hele Israel. Agas het die toebehore in die huis van God bymekaargemaak en die toebehore van die huis van God stukkend geslaan. Hy het die deure van die huis van die Here gesluit en vir hom altare opgerig op elke straathoek in Jerusalem. In elke enkele dorp van Juda het hy offerhoogtes opgerig om vir ander gode offers te verbrand, en die Here, die God van sy voorouers, uitgetart. Sy verdere geskiedenis en al sy ondernemings, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel. Agas het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die stad, in Jerusalem begrawe; ja, hulle het hom nie na die grafte van die konings van Israel geneem nie. Hiskia, sy seun, het in sy plek koning geword. Hiskia was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat reeds in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand al, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel het. Hy het die priesters en Leviete laat ingaan en hulle byeengebring op die plein aan die oostekant. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Heilig julleself nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle voorouers, en verwyder die besoedeling uit die heiligdom. Want ons voorouers was ontrou en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God, en Hom verlaat. Hulle het weggedraai van die •tabernakel van die Here en hulle rug daarop gedraai. Hulle het selfs die deure van die portaal gesluit en die lampe uitgedoof. Reukwerk het hulle nie gebrand nie, en •brandoffers het hulle nie in die heiligdom vir die God van Israel gebring nie. Toe het 'n oordeel uit toorn van die Here teen Juda en Jerusalem losgebreek. Hy het van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld, 'n verskrikking en die rede vir 'n gefluit, gemaak, soos wat julle met julle eie oë sien. Kyk, ons voorouers het geval deur die swaard, en ons seuns, ons dogters en ons vroue is tans in gevangenskap as gevolg hiervan. Ek het my nou voorgeneem om met die Here, die God van Israel, 'n verbond te sluit, sodat sy brandende toorn van ons afgewend word. My seuns, moet nou nie nalatig wees nie! Want julle is deur die Here uitgekies om voor Hom te staan, om vir Hom diens te doen en om vir Hom tempeldienaars en dié wat offers verbrand, te wees. ” Die volgende Leviete het toe gereedgemaak: Magat, seun van Amasai, en Joël, seun van Asarja, uit die nageslag van Kehat; uit die nageslag van Merari: Kis, seun van Abdi, en Asarja, seun van Jehallelel; uit die nageslag van Gerson: Joag, seun van Simma, en Eden, seun van Joag; uit die nageslag van Elisafan: Simri en Jeïel; uit die nageslag van Asaf: Sagaria en Mattanja; uit die nageslag van Heman: Jehiël en Simi; uit die nageslag van Jedoetoen: Semaja en Ussiël. Hulle het hulle stamgenote byeengebring, hulleself geheilig en ingegaan volgens die opdrag van die koning, om in ooreenstemming met die woorde van die Here, die huis van die Here te reinig. Die priesters het toe die binneste deel van die huis van die Here binnegegaan om dit te reinig. Hulle het alle •onrein dinge wat hulle in die •tempel van die Here gevind het, uitgebring na die voorhof van die huis van die Here. Die Leviete het dit oorgeneem om na buite, na die Kidrondal, te neem. Hulle het op die eerste dag van die eerste maand begin om die •tempel te heilig, en op die agtste dag van die maand het hulle by die portaal van die Here uitgekom. Daarna het hulle die huis van die Here vir nog agt dae geheilig, en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle daarmee klaar. Toe gaan hulle in na koning Hiskia, en sê: “Ons het die hele huis van die Here gereinig, die brandofferaltaar en al sy gereedskap, die tafel met die gerangskikte brood, en al sy gereedskap. Al die gereedskap wat koning Agas gedurende sy regering in sy ontrou onbruikbaar gemaak het, het ons reggesit en geheilig. Kyk, dit is voor die altaar van die Here. ” Koning Hiskia het toe vroeg opgestaan, die stadsleiers byeengebring en opgegaan na die huis van die Here. Hulle het sewe bulle, sewe ramme, sewe lammers en sewe bokramme saamgeneem as 'n •reinigingsoffer vir die koningskap, vir die heiligdom en vir Juda. Hy het die nageslag van Aäron, die priesters, aangesê om dit op die altaar van die Here te offer. Hulle het toe die bulle geslag, en die priesters het die bloed oorgeneem en dit teen die altaar gesprinkel. Hulle het die ramme geslag en die bloed is teen die altaar gesprinkel. Hulle het die lammers geslag en die bloed is teen die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die bokramme vir die reinigingsoffer nadergebring voor die koning en die geloofsgemeenskap, en hulle het hulle hande daarop gelê. Die priesters het hulle geslag en met die bloed 'n reinigingseremonie by die altaar uitgevoer om versoening te doen vir die hele Israel, “want vir die hele Israel,” het die koning gesê, “is hierdie brandoffer en reinigingsoffer.” Hy het die Leviete opgestel in die huis van die Here, met simbale, harpe en liere, in ooreenstemming met die opdrag van Dawid en van Gad, die koning se siener, en die profeet Natan; want dit was die opdrag deur die Here by monde van sy profete. Toe die Leviete gereedstaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette, gee Hiskia die opdrag dat die brandoffer geoffer moet word op die altaar. Net toe met die brandoffer begin is, begin die lied van die Here en die trompette, met begeleiding deur die instrumente van Dawid, die koning van Israel. Terwyl die hele geloofsgemeenskap in aanbidding buig, is die lied gesing en die trompette geblaas. Dit het alles aangehou totdat die brandoffer afgehandel was. Toe die brandoffer verby was, het die koning en almal wat by hom teenwoordig was, gekniel en in aanbidding gebuig. Koning Hiskia en die leiers het vir die Leviete gesê om die Here te loof met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener. Hulle het toe die Here met vreugde geloof, gekniel en in aanbidding gebuig. Hiskia het daarop gereageer en gesê: “Nou het julle julleself aan die Here gewy. Kom nader en bring slagoffers en •dankoffers na die huis van die Here. ” Die geloofsgemeenskap het toe slagoffers en dankoffers nadergebring, en elkeen wie se hart daartoe bereid was, ook brandoffers. Die getal brandoffers wat die geloofsgemeenskap nadergebring het, was sewentig beeste, honderd ramme en tweehonderd lammers, dit alles as brandoffers vir die Here. Die •heilige gawes was seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee. Daar was egter te min priesters, en hulle kon nie al die brandoffers afslag nie. Hulle stamgenote, die Leviete, het hulle bygestaan tot die werk voltooi was en totdat die ander priesters hulleself kon heilig. Die Leviete was immers meer nougeset om hulleself te heilig as wat die priesters was. En naas die brandoffers in oorvloed, was daar nog die vet van die maaltydoffers en die •drankoffers wat by die brandoffers hoort. So is die dienswerk in die huis van die Here gereël. Hiskia en die hele volk was verheug oor wat God vir die volk voorsien het, want dit het skielik gebeur. Hiskia het boodskappe na die hele Israel en Juda gestuur, en selfs briewe geskryf aan Efraim en Manasse om na die huis van die Here in Jerusalem te kom, om die Pasga van die Here, die God van Israel, te vier. Die koning, sy •hoë amptenare en die hele geloofsgemeenskap het in Jerusalem ooreengekom om die Pasga in die tweede maand te vier, want hulle kon dit nie op die regte tyd vier nie, omdat nie genoeg priesters hulleself geheilig het nie, en die volk nie in Jerusalem bymekaar was nie. Dit was reg in die oë van die koning en die hele geloofsgemeenskap. Hulle het besluit om 'n boodskap dwarsdeur die hele Israel te stuur, van Berseba tot by Dan, om die Pasga van die Here, die God van Israel, te kom vier in Jerusalem; want hulle het dit voorheen nie as 'n menigte gevier soos dit voorgeskryf was nie. Hardlopers het met die briewe van die koning en sy hoë amptenare deur die hele Israel en Juda gegaan om op bevel van die koning te sê: “Israeliete, keer terug na die Here, die God van Abraham, Isak en Israel, sodat Hy kan terugkeer na dié wat oorgebly het, wat vir julle ontkom het uit die greep van die konings van Assirië. Moenie soos julle voorouers en julle stamgenote wees wat ontrou was aan die Here, die God van hulle voorouers nie, met die gevolg dat Hy hulle toe 'n verskrikking gemaak het, soos julle self sien. Moet nou nie hardnekkig wees soos julle voorouers nie. Steek 'n hand uit na die Here en kom na sy heiligdom wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, sodat sy brandende toorn van julle afgewend word. Want as julle terugkeer na die Here, sal julle stamgenote en seuns welwillendheid ervaar by dié wat hulle weggevoer het, sodat hulle na hierdie land kan terugkeer. Die Here julle God is immers genadig en barmhartig; Hy sal nie die gesig van julle wegdraai as julle na Hom terugkeer nie.” Die hardlopers het van dorp tot dorp die gebied van Efraim en Manasse deurkruis tot sover as Sebulon. Maar die mense het hulle telkens uitgelag en met hulle die spot gedryf. Tog het sommige uit Aser, Manasse en Sebulon hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom. Ook oor Juda was die hand van God om aan hulle 'n eensgesinde hart te gee, sodat hulle die bevel van die koning en die hoë amptenare uitgevoer het in ooreenstemming met die woord van die Here. Baie mense het in Jerusalem byeengekom om in die tweede maand die Fees van die Ongesuurde Brood te vier. Dit was 'n baie groot byeenkoms. Hulle het gereedgemaak en die altare wat in Jerusalem was, verwyder. Hulle het ook al die wierookaltare verwyder en dit in die Kidrondal gegooi. Hulle het die pasgalam geslag op die veertiende dag van die tweede maand. Die priesters en Leviete het hulle geskaam, hulleself geheilig en die •brandoffers nadergebring in die huis van die Here. Hulle het hulle plekke ingeneem soos vir hulle bepaal word deur die Wet van Moses, die man van God. Die priesters het telkens die bloed gesprinkel wat die Leviete aangee. Omdat daar baie in die byeenkoms was wat hulleself nie geheilig het nie, was die Leviete belas met die slag van die pasgalammers van almal wat nie gereinig was om dit aan die Here te wy nie. Ja, die grootste deel van die volk, baie uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon, het hulleself nie gereinig nie, maar tog die pasgalam geëet op 'n ander wyse as wat voorgeskryf was. Hiskia het egter vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here wat goed is, versoening doen vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God, die Here, die God van sy voorouers, te soek, al voldoen hy nie aan die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.” Die Here het Hiskia verhoor en die volk genees. Die Israeliete wat in Jerusalem teenwoordig was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank met groot vreugde gevier, terwyl die Leviete en die priesters elke dag die Here loof met instrumente waarmee die mag van die Here besing is. Hiskia het al die Leviete wat goeie begrip getoon het in hulle diens aan die Here, bemoedigend toegespreek. Die mense het in die feestyd van sewe dae die •maaltydoffers wat gebring is, geëet, terwyl hulle belydenis doen voor die Here, die God van hulle voorouers. Die hele geloofsgemeenskap het toe ooreengekom om nog sewe dae fees te vier. Hulle het toe die sewe dae met vreugde gevier, want Hiskia, die koning van Juda, het aan die geloofsgemeenskap eenduisend bulle en seweduisend stuks kleinvee afgestaan, en die hoë amptenare het vir die geloofsgemeenskap 'n duisend bulle en tienduisend stuks kleinvee afgestaan. In groot getalle het priesters hulleself geheilig. Die hele geloofsgemeenskap van Juda was verheug, ook die priesters en die Leviete, en die hele geloofsgemeenskap wat uit Israel gekom het, sowel as die •vreemdelinge wat uit die gebied van Israel gekom het en dié wat in Juda gewoon het. Daar was groot vreugde in Jerusalem, want sedert die dae van Salomo, seun van Dawid, koning van Israel, het daar nie so iets in Jerusalem gebeur nie. Die priesters en Leviete het toe opgestaan en die volk geseën; hulle stem is gehoor en hulle gebed het God se heilige woning, die hemel, bereik. Toe dit alles verby was, het die hele Israel wat teenwoordig was, uitgegaan na die dorpe van Juda. Hulle het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap, die offerhoogtes en die altare in die hele Juda en Benjamin, Efraim en Manasse, afgebreek totdat dit vernietig was. Daarna het al die Israeliete teruggekeer na hulle stede, elkeen na sy erfgrond. Hiskia het die priesters en die Leviete volgens hulle afdelings laat aantree, elke afdeling in ooreenstemming met sy dienswerk – die priesters en Leviete, om by die •brandoffers en •maaltydoffers diens te doen, en om te dank en loof in die poorte van die Here se kamp. Die bydrae van die koning, uit sy eie besittings, vir die brandoffers was die volgende: die brandoffers in die oggend en die aand, die brandoffers op die Sabbatte, en tydens die nuwemaansfeeste en die vaste feestye, soos voorgeskryf in die wet van die Here. Hy het die volk, die inwoners van Jerusalem, aangesê om die deel wat die priesters en Leviete toekom, te gee, sodat hulle al hulle kragte kon wy aan die wet van die Here. Soos die woord versprei het, het die Israeliete oorvloedig gegee van die eerste opbrengs van koring, •nuwe wyn, olie, heuning en alles wat die landerye opgelewer het. 'n Tiende van alles het hulle in groot hoeveelhede ingebring. Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gewoon het, ook hulle het die tiendes van beeste en kleinvee afgestaan. Die tiendes van die •heilige gawes wat aan die Here hulle God gewy was, het hulle gebring en dit hoop vir hoop neergesit. In die derde maand het hulle die hope begin pak, en in die sewende maand was hulle daarmee klaar. Toe Hiskia en die •hoë amptenare daar aankom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys. Toe Hiskia die priesters en die Leviete uitvra oor die hope, het Asarja, die hoëpriester uit die huis van Sadok, met hom gepraat. Hy het vir hom gesê: “Vandat die •wydingsgeskenke in die huis van die Here begin inkom het, het ons geëet en versadig geword, en daar is nog baie oor. Omdat die Here sy volk geseën het, het hierdie oorvloed oorgebly.” Hiskia het toe opdrag gegee dat vertrekke in die huis van die Here ingerig moet word. Hulle het dit toe ingerig. Die mense het die wydingsgeskenke, die tiendes en die heilige gawes getrou ingebring. Daaroor het Kenanja, die Leviet, toesig gehou, en Simi, sy broer, was tweede in bevel. Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismagja, Magat en Benaja was toesighouers onder bevel van Kenanja en sy broer Simi, op aanwysing van koning Hiskia en Asarja, die leier in die huis van God. Kore, seun van Jimna, die Leviet, wat die poortwag was by die Oospoort, het beheer gehad oor die vrywillige gawes aan God, om die wydingsgeskenke van die Here en die •besonder heilige gawes uit te deel. Hy is in die dorpe van die priesters getrou bygestaan deur Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Seganja, om aan hulle stamgenote in hulle afdelings, groot en klein, hulle porsies te gee. Naas die manlike persone van drie jaar en ouer op hulle geslagsregister, het dit almal ingesluit wat, volgens hulle afdelings, die huis van die Here binnegegaan het ooreenkomstig die eise van elke dag vir hulle diens, met die verantwoordelikhede daaraan verbonde. In die geval van die priesters het dit plaasgevind in ooreenstemming met die families op die geslagsregister, maar in die geval van die Leviete van twintig jaar en ouer in ooreenstemming met hulle verantwoordelikhede in hulle afdelings. Hulle moes in die geslagsregisters opgeneem word met al hulle afhanklikes, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, die hele geloofsgemeenskap, want deur die getrouheid van die Leviete is hulle ook geheilig. Vir die nageslag van Aäron, die priesters, in die weigebiede van hulle dorpe, was daar in elke afsonderlike dorp manne wat by die naam aangewys is, wat die porsies moes gee aan elke manlike persoon onder die priesters, en aan elkeen wat geregistreer is onder die Leviete. Op hierdie manier het Hiskia dit gereël deur die hele Juda. Hy het gedoen wat goed, reg en eerbaar was voor die Here sy God. Elke taak wat hy aangepak het in verband met die diens in die huis van God en in verband met die wette en gebooie, was daarop gerig om sy God se wil te soek. Met sy hele hart het hy dit gedoen, en hy was suksesvol. Ná hierdie maatreëls en bewyse van trou het Sanherib, die koning van Assirië, gekom, Juda binnegeval en die versterkte stede onder beleg geplaas, met die gedagte om hulle vir homself te verower. Toe Hiskia sien dat Sanherib kom en dat sy doel oorlog teen Jerusalem was, het hy saam met sy •hoë amptenare en sy krygshelde besluit om die waterfonteine wat buite die stad was, te bedek. Hulle het hom gehelp. Baie mense het byeengekom en al die fonteine bedek, asook die stroom wat onder die grond vloei. Hulle het gesê: “Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind?” Hy het hom ingespan en die hele muur waarin 'n bres was, herbou en torings daarop aangebring, met 'n ekstra muur aan die buitekant. Hy het die terrasse in die Stad van Dawid herstel, en baie wapens gemaak, ook kleinskilde. Hy het militêre bevelvoerders oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeengebring. Hy het hulle bemoedig en gesê: “ Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: By hom is 'n menslike mag, maar by ons is die Here ons God om ons te help en ons oorlog te voer.” Die manskappe is bemoedig deur die woorde van Hiskia, koning van Juda. Hierna het Sanherib, koning van Assirië, terwyl hy self by Lagis was met sy volle strydmag by hom, sy amptenare na Jerusalem gestuur, na Hiskia, koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, met die boodskap: “So sê Sanherib, die koning van Assirië, ‘Waarop vertrou julle, dat julle 'n beleëring afwag in Jerusalem? Mislei Hiskia julle nie om julle maar net aan die dood deur honger en dors oor te gee as hy sê “Die Here ons God sal ons red uit die greep van die koning van Assirië” nie? Is dit nie hy, Hiskia, wat God se offerhoogtes en altare verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het “By net een altaar sal julle in aanbidding buig en daarop offers verbrand” nie? Weet julle nie wat ek, ek en my voorvaders aan al die volke van lande gedoen het nie? Was die gode van die nasies van die lande enigsins in staat om hulle lande uit my hand te red? Wie onder al die gode van daardie nasies, wat my voorvaders aan volledige vernietiging oorgegee het, was in staat om sy volk uit my hand te red? Ja, sou julle God dan in staat wees om julle uit my hand te red? Moet dan nou nie dat Hiskia julle bedrieg en julle op hierdie manier mislei nie. Moet hom nie glo nie, want geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my hand, of uit die hand van my voorvaders nie. Hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan red?’ ” Sanherib se amptenare het nog meer te sê gehad teen die Here God, en teen sy dienskneg Hiskia. Sanherib het selfs briewe geskryf om die Here, die God van Israel, uit te tart deur oor Hom te sê: “Net soos die gode van die nasies van die lande hulle mense nie uit my hand kon red nie, net so sal die God van Hiskia nie sy volk uit my hand red nie.” Hulle het dit in Judees uitgeskreeu vir die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om hulle bang te maak en hulle te verskrik, sodat hulle die stad kon inneem. Hulle het gepraat oor die God van Jerusalem soos oor die gode van die volke van die aarde, wat maar net 'n maaksel van mensehande is. Koning Hiskia en die profeet Jesaja, seun van Amos, het hieroor gebid en na die hemel om hulp geroep. Toe stuur die Here 'n •engel, en dié het elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis. Hy het beskaamd na sy land teruggekeer. Toe hy in die huis van sy god kom, het sy eie seuns hom daar met die swaard neergevel. Die Here het Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, koning van Assirië, ja, uit almal se hand. Hy het vir hulle aan alle kante rus gegee. Baie mense het voortdurend vir die Here offers na Jerusalem gebring, ook kosbaarhede vir Hiskia, koning van Juda. Hy het ná hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies. In daardie dae het Hiskia tot die dood toe siek geword. Toe hy tot die Here gebid het, het Hy hom geantwoord en vir hom 'n teken gegee. Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom gereageer nie. Toe het 'n oordeel uit toorn teen hom en teen Juda en Jerusalem losgebreek. Maar Hiskia het hom verootmoedig oor die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die oordeel uit toorn van die Here in die dae van Hiskia nie teen hulle voortgeduur het nie. Hiskia het baie groot rykdom en eer verwerf, en skatkamers vir silwer, goud, edelstene, speserye, kleinskilde en allerlei kosbaarhede vir hom opgerig, asook voorraadkamers vir die opbrengs van koring, •nuwe wyn en olie, en stalle vir elke soort grootvee, en stalle vir kleinvee. Hy het vir hom dorpe aangelê en 'n groot hoeveelheid kleinvee en beeste verkry – ja, God het vir hom besonder baie besittings gegee. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die water van die Gihon bedek en dit ondergronds direk wes na die Stad van Dawid gelei het. Hiskia was suksesvol in alles wat hy aangepak het. Dit was ook so met die gesante van die •hoë amptenare van Babel, wat na hom gestuur is om ondersoek te doen na die teken wat daar in die land was. God het hom verlaat om hom te toets, om te weet wat alles in sy hart aangaan. Die verdere geskiedenis van Hiskia en sy dade van trou, kyk, dit is opgeteken in die openbaring van die profeet Jesaja, seun van Amos, in die boekrol van die konings van Juda en Israel. Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom begrawe teen die skuinste by die grafte van die nageslag van Dawid. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het besondere eer aan hom bewys met sy dood. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. In ooreenstemming met die afstootlike gebruike van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare vir die Baäls opgerig, asjeras gemaak, voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die Here gebou, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem sal my Naam vir altyd wees.” In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy is die een wat sy seuns in die vuur geoffer het in die Ben-Hinnomdal, voortekens gelees het, wiggelary en towery beoefen het en dodebesweerders en waarsêers aangestel het. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, om Hom uit te tart. Hy het ook 'n gesnede beeld wat hy gemaak het, in die huis van God neergesit, die huis waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie weer Israel se voet verwyder van die grond wat Ek aan julle voorouers toegewys het nie, maar slegs as hulle alles wat Ek hulle beveel het by monde van Moses – die hele wet, die vaste voorskrifte en bepalings – nougeset uitvoer.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat afdwaal om selfs meer kwaad te doen as die nasies wat die Here voor die Israeliete uitgedelg het. Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie. Die Here het toe die leëraanvoerders van die koning van Assirië teen hulle laat optrek. Hulle het Manasse gevange geneem met hake in sy neus, hom met bronsboeie geboei, en hom na •Babel geneem. Maar toe hy in die noute was, het hy die Here sy God se guns gesoek, hom ernstig verootmoedig voor die God van sy voorouers en tot Hom gebid. God is geraak deur sy pleitrede en het sy smeekbede verhoor. Hy het hom na Jerusalem, na sy koningskap, laat terugkeer. Manasse het toe erken dat die Here God is. Daarna het hy die buitenste muur van die Stad van Dawid gebou, aan die westekant van Gihon in die dal, tot by die Vispoort. Hy het dit baie hoog gebou en die Ofel ingesluit. Hy het leëraanvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel. Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die Here verwyder, asook al die altare wat hy op die berg van die huis van die Here en in Jerusalem gebou het. Hy het dit buite die stad weggegooi. Hy het die altaar van die Here herstel en daar •maaltydoffers en •dankoffers geslag. Hy het Juda aangesê om die Here, die God van Israel, te dien. Die volk het egter nog steeds offers geslag op die offerhoogtes, maar net vir die Here hulle God. Die verdere geskiedenis van Manasse, sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat hom in die Naam van die Here, die God van Israel, aangespreek het, kyk, dit staan in die Geskiedenis van die Konings van Israel. Sy gebed, die verhoring van sy pleitrede, al sy sonde en ontrou, die plekke waar hy offerhoogtes gebou het en waar hy die asjeras en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van Gosai. Manasse het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom by sy paleis begrawe. Sy seun Amon het in sy plek koning geword. Amon was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, soos sy vader Manasse gedoen het. Vir al die gesnede beelde wat sy vader Manasse gemaak het, het Amon offers geslag en hulle gedien. Hy het hom nie verootmoedig voor die Here soos sy vader Manasse hom verootmoedig het nie; inteendeel, hy, Amon, het die skuld meer gemaak. Sy amptenare het teen hom saamgesweer en hom in sy paleis doodgemaak. Toe het die volk van die land almal neergevel wat teen koning Amon saamgesweer het. Die volk van die land het sy seun Josia in sy plek koning gemaak. Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die paaie van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. In die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te raadpleeg. In die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die offerhoogtes, die asjeras en die gesnede en gegote beelde. Hulle het onder sy toesig die altare van die Baäls afgebreek en ook die wierookaltare daarop afgekap. Hy het die asjeras en die gesnede en gegote beelde stukkend gebreek, dit fyngestamp en oor die grafte gestrooi van dié wat vir hulle offers geslag het. En die beendere van die priesters, dié het hy op hulle altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig. In al die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en tot by Naftali, het hy oral hulle huise deursoek. Hy het die altare en die asjeras afgebreek, en die afgodsbeelde het hy verbrysel deur dit fyn te stamp. Die wierookaltare het hy in die hele gebied van Israel fyngekap. Toe het hy teruggekeer na Jerusalem. In die agttiende jaar van sy regering het hy, terwyl hy besig was om die land en die •tempel te reinig, vir Safan, seun van Asalja, vir Maäseja, die stadsbestuurder, en vir Joag, seun van Joahas, die herout, gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. Hulle het by Gilkija, die hoëpriester, gekom en die geld afgegee wat in die huis van God ingebring is – die geld wat die Leviete, die deurwagters, ingesamel het by Manasse en Efraim, by die hele res van Israel, die hele Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem. Hulle het dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel was by die huis van die Here. Hulle het dit dan gegee vir die werksmense wat in die huis van die Here besig was om die gebou op te knap en te herstel. Hulle het dit vir die skrynwerkers en bouers gegee om gekapte klip en hout mee te koop vir die balkpenne, en om die vertrekke wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien. Die manne was betroubaar in die uitvoering van hulle taak. Oor hulle is Jagat en Obadja, Leviete uit die nageslag van Merari, en Sagaria en Mesullam, uit die nageslag van Kehat, aangestel om toesig te hou. Die Leviete, elkeen 'n kundige met musiekinstrumente, het ook beheer gehad oor die draers, en was toesighouers oor elke werker in elke soort werk. Sommige van die Leviete was sekretarisse, opsieners en hekwagte. Terwyl hulle besig was om die geld na buite te neem wat in die huis van die Here byeengebring is, het die priester Gilkija afgekom op 'n •boekrol met die Wet van die Here by monde van Moses. Gilkija opper toe die saak, en sê vir Safan, die sekretaris: “Ek het sowaar op 'n boekrol van die wet in die huis van die Here afgekom.” Daarop het Gilkija die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol na die koning geneem. Hy het weereens aan die koning verslag gedoen: “Alles wat in die hande van u dienaars gelaat is, is hulle besig om uit te voer. Hulle het die geld wat in die huis van die Here gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan hulle wat aangestel is, en aan die werksmense.” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Gilkija, die priester, het 'n boekrol vir my gegee.” Safan lees toe daaruit vir die koning voor. Toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur. Die koning het Gilkija en ook Agikam, seun van Safan, Abdon, seun van Miga, Safan, die sekretaris, en Asaja, die koning se dienaar, die volgende opdrag gegee: “Gaan raadpleeg die Here namens my en dié wat in Israel en Juda oorgebly het, oor die woorde van die boekrol wat gevind is, want die Here se woede wat oor ons uitgestort is, is groot, omdat ons voorouers die woord van die Here nie nagekom het, deur nie ooreenkomstig alles wat in hierdie boekrol geskryf is, op te tree nie.” Gilkija en dié vir wie die koning opdrag gegee het, gaan toe na Gulda die profetes, die vrou van Sallum, seun van Tokhat, seun van Gasra, die toesighouer oor die priesterklere. Sy het in Jerusalem, in die nuwe stadsdeel, gebly. Toe hulle volgens hulle opdrag met haar gepraat het, sê sy vir hulle: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, so sê die Here: Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek en sy inwoners – al die vervloekings wat geskryf staan in hierdie boekrol waaruit hulle vir die koning van Juda voorgelees het. Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offers verbrand het, sodat hulle My uitgetart het met al hulle handewerk, sal my woede oor hierdie plek uitgestort word, en dit sal nie geblus word nie.’ En vir die koning van Juda wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg, vir hom moet julle so sê, ‘So sê die Here, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het – omdat jou hart sag is, en jy jouself voor God verootmoedig het toe jy sy woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het, ja, omdat jy jouself voor My verootmoedig, jou klere geskeur en voor my gehuil het, sal Ek ook luister,’ is die uitspraak van die Here. ‘Kyk, Ek gaan jou met jou voorouers verenig; jy sal in vrede in jou graf met hulle verenig word, en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gaan bring nie.’ ” Hulle het toe aan die koning verslag gedoen. Die koning het toe al die oudstes van Juda en Jerusalem byeen laat roep. Die koning het toe opgegaan na die huis van die Here, en so ook al die manne van Juda, die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete en die hele volk, van groot tot klein. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die Here gevind is, voorgelees. Die koning het op sy staanplek gaan staan en voor die Here die verbond gesluit. Hy het onderneem om die Here te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met sy hele hart en sy hele wese na te kom deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, uit te voer. Hy het almal wat hulle in Jerusalem en Benjamin bevind het, laat toetree tot die verbond. Die inwoners van Jerusalem het in ooreenstemming met die verbond van God, die God van hulle voorouers, opgetree. Josia het al die afstootlike dinge verwyder uit al die gebiede wat aan die Israeliete behoort het. Hy het almal wat hulle in Israel bevind het, daartoe oorgehaal om die Here hulle God te dien. Solank hy geleef het, het hulle nie van die Here, die God van hulle voorouers, afgewyk nie. Josia het in Jerusalem die Pasga vir die Here gevier. Hulle het die pasgalammers op die veertiende van die eerste maand geslag. Hy het die priesters vir hulle pligte laat aantree en hulle bemoedig vir die dienswerk in die huis van die Here. Hy het vir die Leviete wat die hele Israel onderrig het en aan die Here gewy was, gesê: “Plaas die heilige ark in die •tempel wat Salomo, seun van Dawid, koning van Israel, gebou het. Dit moet nie meer vir julle 'n las op julle skouers wees nie. Dien nou die Here julle God en sy volk Israel. Hou julle in julle families en afdelings gereed, soos Dawid, koning van Israel, dit beskryf het en volgens die geskrewe opdragte van sy seun Salomo. Staan julle nou, elke groep van die Levitiese families, volgens die indeling in families, in die heiligdom gereed vir julle volksgenote, die gewone mense. Slag dan die pasgalammers. Heilig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote deur dit te doen in ooreenstemming met die woord van die Here by monde van Moses.” Josia het aan die gewone mense skaap- en boklammers afgestaan, alles as •Pasgaoffer vir almal wat daar teenwoordig was, 'n getal van dertigduisend, en dan ook nog drieduisend beeste. Dit was uit die private besit van die koning. Sy •hoë amptenare het vrywillig aan die volk, die priesters en die Leviete offerdiere afgestaan. Gilkija, Sagaria en Jegiël, leiers in die huis van God, het vir die priesters as Pasgaoffer tweeduisend seshonderd gegee; en dan ook nog driehonderd beeste. Kenanja en Semaja en Netanel, sy broers, en Gasabja, Jeïel en Josabad, leiers van die Leviete, het aan die Leviete vyfduisend as Pasgaoffer afgestaan, en dan ook nog vyfhonderd beeste. Die dienswerk is toe gereël: Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete was in hulle afdelings, volgens die opdrag van die koning, en hulle het die pasgalammers geslag. Terwyl die Leviete slag, het die priesters die bloed wat hulle aangee, gesprinkel. Hulle het dit wat as brandoffer moes dien, eenkant gesit om dit aan kleiner groepe in die families van die gewone mense te gee, sodat dit vir die Here aangebied kon word, soos geskryf staan in die •boekrol van Moses. Met die beeste het hulle net so gemaak. Hulle het die pasgalammers volgens voorskrif oor die vuur gaargemaak, maar die •heilige gawes het hulle in potte, kastrolle en skottels gaargemaak. Hulle het dit vinnig vir die gewone mense geneem. Daarna het die Leviete vir hulleself en vir die priesters die Pasga gereedgemaak. Omdat die priesters, die nageslag van Aäron, tot in die nag betrokke was by die verbranding van die brandoffers en vetstukke, het die Leviete vir hulleself en vir die priesters, die nageslag van Aäron, die Pasga gereedgemaak. Die sangers, die nageslag van Asaf, was op hulle plek, ooreenkomstig die opdrag van Dawid, Asaf, Heman en Jedoetoen, die siener van die koning. En wat die poortwagte by elke poort betref, dit was nie vir hulle nodig om van diens af te gaan nie, want hulle stamgenote, die Leviete, het vir hulle die Pasga gereedgemaak. So is die hele dienswerk van die Here op daardie dag gereël om die Pasga te vier en die brandoffers op die altaar van die Here te verbrand ooreenkomstig die opdrag van die koning, Josia. Die Israeliete wat gedurende daardie tyd teenwoordig was, het die Pasga gevier en sewe dae lank die Fees van die Ongesuurde Brood. So 'n Pasga is nie in Israel gevier sedert die tyd van Samuel, die profeet, nie. Van al die konings van Israel het nie een dit gevier soos die Pasga wat Josia, die priesters, die Leviete, die hele Juda en Israel wat daar teenwoordig was, en die inwoners van Jerusalem, gevier het nie. Hierdie Pasga is in die agttiende jaar van Josia se koningskap gevier. Ná al hierdie gebeure waartydens Josia die tempel herstel het, het Nego, koning van Egipte, opgetrek om by Karkemis aan die Eufraat oorlog te maak. Josia het uitgetrek om teen hom te staan te kom. Nego het boodskappers na hom gestuur om te sê: “Wat het jy teen my, koning van Juda? Dit is nie teen jou wat ek vandag optrek nie, maar teen 'n koningshuis met wie ek in oorlog verkeer. Dit is God wat gesê het ek moet gou maak. Bly jy weg van God, wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie!” Josia het egter nie van hom weggedraai nie, maar vir die geveg met hom het hy homself vermom. Hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie. Hy het in die vlakte van Megiddo aangekom om te veg. Die boogskutters het die koning, Josia, geskiet. Die koning sê toe vir sy dienaars: “Kry my hier weg, want ek is swaar gewond!” Sy dienaars het hom van die strydwa afgehaal en hom op die tweede wa wat hy gehad het, vervoer. Hulle het hom na Jerusalem geneem. Hy het gesterf en is in die grafte van sy voorouers begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur. Jeremia het 'n treurlied oor Josia gedig. Al die sangers en sangeresse dra dit vandag nog voor in hulle treurliedere oor Josia. Dit het 'n instelling geword in Israel. Kyk, dit is opgeteken in die Treurliedere. Die verdere geskiedenis van Josia en sy dade van trou, volgens wat geskryf staan in die Wet van die Here, sy vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem en hom in Jerusalem koning gemaak in die plek van sy vader. Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Die koning van Egipte het hom in Jerusalem afgesit en die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en een kikkar goud. Die koning van Egipte het toe Eljakim, sy broer, koning gemaak oor Juda en Jerusalem. Hy het sy naam verander na Jojakim. Nego het sy broer Jehoagas weggevat en hom na Egipte geneem. Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Teen hom het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek en hom met bronsboeie geboei om hom na Babel te neem. Van die toebehore in die huis van die Here is deur Nebukadnesar na Babel geneem. Hy het dit in sy paleis in Babel neergesit. Die verdere geskiedenis van Jojakim, sy afstootlike dinge wat hy gedoen het, en wat teen hom gevind is, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het in sy plek koning geword. Jojagin was agttien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande en tien dae lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Teen die jaarwending het koning Nebukadnesar mense gestuur, en hy het hom na Babel laat neem, saam met kosbare voorwerpe uit die huis van die Here. Hy het toe sy broer Sedekia koning gemaak oor Juda en Jerusalem. Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Hy het hom nie verootmoedig voor Jeremia, die profeet, wat die mondstuk van die Here was nie. Selfs teen koning Nebukadnesar, wat hom by God 'n eed laat aflê het, het hy in opstand gekom. Hy was hardnekkig en het sy hart verhard, en nie na die Here, die God van Israel, teruggekeer nie. Ook al die leiers van die priesters en die volk het, in navolging van die afstootlike gebruike van die nasies, al hoe meer ontrou opgetree. Hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig. Die Here, die God van hulle voorouers, het telkens weer aan hulle boodskappe gestuur by monde van sy boodskappers, want Hy het omgegee vir sy volk en sy woonplek. Hulle het egter telkens die gek geskeer met die boodskappers van God en sy woorde versmaai, terwyl hulle met sy profete die spot gedryf het, totdat die Here se woede teen sy volk opgelaai het, totdat geen herstel meer moontlik was nie. God het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong manne binne-in hulle heiligdom met die swaard doodgemaak. Hy het geen jong man of maagd, oumens of verswakte gespaar nie. Almal is in sy hand gegee. Al die toebehore in die huis van God, groot en klein, die skatte van die huis van die Here en van die koning en sy •hoë amptenare, alles het hy na Babel geneem. Hulle het die huis van God afgebrand, die stadsmure van Jerusalem afgebreek, al die stad se vestings verbrand en so alle kosbare voorwerpe daarin vernietig. Hy het dié wat oorgebly het ná die gevegte, in ballingskap weggevoer na Babilonië, waar hulle slawe was vir hom en sy nageslag, totdat die koninkryk van Persië aan die bewind gekom het. Dit het gebeur, sodat die woord van die Here, aangekondig by monde van Jeremia, vervul is. Totdat die land sy verlore Sabbatsjare ingehaal het, het dit gerus, die hele tyd wat dit onbewerk gelê het, om die profesie van sewentig jaar te vervul. In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel: “So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee. Hy is die Een wat dit aan my opgedra het om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – die Here sy God is met hom – laat hy optrek!’ ” In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel: “ So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee. Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – mag sy God met hom wees – hy moet optrek na Jerusalem in Juda om die huis te herbou van die Here, die God van Israel, die God wat in Jerusalem is. En almal wat agterbly op al die plekke waar diegene wat wil teruggaan, as •vreemdelinge gewoon het, dit wil sê die mense van hulle omgewing, moet diegene wat wil teruggaan, ondersteun met silwer, goud, goedere en lewende hawe. Hulle moet ook vrywillige gawes gee vir die huis van die God wat in Jerusalem is.’ ” Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en Leviete, elkeen wat in sy gemoed deur God oortuig is, gereedgemaak om op te trek om die huis van die Here in Jerusalem te herbou. Al die mense in hulle omgewing het hulle ondersteun met voorwerpe van silwer, met goud, goedere, vee en kosbare geskenke, afgesien van alles wat ook nog vrywillig gegee is. Koning Kores het al die voorwerpe van die huis van die Here wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggeneem en in die huis van sy gode gesit het, daar laat uithaal. Koning Kores van Persië het dit onder toesig van Mitredat, die tesourier, laat verwyder, wat dit toe vir Sesbassar, die Judese leier, afgetel het. Onder die getal voorwerpe was: 30 bakke van goud 1 000 bakke van silwer 29 messe 30 bakkies van goud 410 dubbelbakkies van silwer 1 000 ander voorwerpe. Altesaam was daar 5 400 voorwerpe van silwer en goud. Al hierdie voorwerpe het Sesbassar saamgeneem toe die ballinge van Babilonië na Jerusalem opgetrek het. Hier volg 'n lys van die mense van die provinsie wat van die gevange ballinge af weggetrek het, dié wat •Nebukadnesar, die koning van Babilonië, na Babilonië weggevoer het. Hulle het na Jerusalem en Juda teruggekeer, elkeen na sy dorp, dié wat saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna gekom het. Die getal mans van die volk Israel was: Die afstammelinge van Paros – 2 172; die afstammelinge van Sefatja – 372; die afstammelinge van Arag – 775; die afstammelinge van Pagat-Moab, uit die afstammelinge van Jesua en Joab – 2 812; die afstammelinge van Elam – 1 254; die afstammelinge van Sattu – 945; die afstammelinge van Sakkai – 760; die afstammelinge van Bani – 642; die afstammelinge van Bebai – 623; die afstammelinge van Asgad – 1 222; die afstammelinge van Adonikam – 666; die afstammelinge van Bigwai – 2 056; die afstammelinge van Adin – 454; die afstammelinge van Ater, deur Hiskia – 98; die afstammelinge van Besai – 323; die afstammelinge van Jora – 112; die afstammelinge van Gasum – 223; die afstammelinge van Gibbar – 95; die afstammelinge uit Betlehem – 123; die manne van Netofa – 56; die manne van Anatot – 128; die afstammelinge uit Asmawet – 42; die afstammelinge uit Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot – 743; die afstammelinge uit Rama en Geba – 621; die manne van Migmas – 122; die manne van Bet-El en Ai – 223; die afstammelinge uit Nebo – 52; die afstammelinge van Magbis – 156; die afstammelinge van 'n ander Elam – 1 254; die afstammelinge van Garim – 320; die afstammelinge uit Lod, Gadid en Ono – 725; die afstammelinge uit Jerigo – 345; die afstammelinge uit Senaä – 3 630. Die priesters was: Die afstammelinge van Jedaja, dit wil sê, die familie van Jesua – 973; die afstammelinge van Immer – 1 052; die afstammelinge van Pasgur – 1 247; die afstammelinge van Garim – 1 017. Die Leviete was: Die afstammelinge van Jesua en Kadmiël, dit wil sê, die afstammelinge van Hodauja – 74. Die sangers was: Die afstammelinge van Asaf – 128. Die afstammelinge van die poortwagte was: Die afstammelinge van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai – altesaam 139. Die tempeldienaars was: Die afstammelinge van Siga, Gasufa Tabbaot; die afstammelinge van Keros, Sia, Padon; die afstammelinge van Lebana, Gagaba en Akkub; die afstammelinge van Gagab, Salmai en Ganan; die afstammelinge van Giddel, Gagar en Reaja; die afstammelinge van Resin, Nekoda en Gassam; die afstammelinge van Ussa, Paseag en Besai; die afstammelinge van Asna, Meünim en Nefusim; die afstammelinge van Bakbuk, Gakufa, Gargur; die afstammelinge van Baslut, Megida, Garsa; die afstammelinge van Barkos, Sisera, Temag; en die afstammelinge van Nesiag en Gatifa. Die nageslag van Salomo se dienaars was: Die afstammelinge van Sotai, Soferet Peruda; die afstammelinge van Jala, Darkon Giddel; die afstammelinge van Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Ami. Die tempeldienaars en die afstammelinge van Salomo se dienaars was altesaam 392. Die volgende is dié wat weggetrek het uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer, maar wat nie kon aandui of hulle familie of dié se nakomelinge uit Israel was nie: Die afstammelinge van Delaja, Tobija en Nekoda – 652. Uit die nageslag van priesters was daar afstammelinge van Gobajja, Kos en Barsillai – 'n man wat uit die dogters van Barsillai, die man uit Gilead, 'n vrou geneem het, en toe na hulle vernoem is. Hierdie mense het hulle inskrywings in die geslagsregisters probeer opspoor, maar kon dit nie vind nie. Hulle is toe as •onrein vir die priesterskap verklaar. Die administrateur het hulle laat weet dat hulle nie van die •besonder heilige gawes mag eet nie, totdat 'n priester aan diens kom wat die Urim en Tummim kon hanteer. Die lede van die gemeenskap was altesaam 42 360, afgesien van hulle slawe en hulle slavinne; dié was 7 337. Hulle het ook nog 200 sangers en sangeresse gehad, asook 736 perde, 245 muile, 435 kamele en 6 720 donkies. Toe hulle by die huis van die Here wat in Jerusalem is, aankom, het party van die familiehoofde vrywillige bydraes gegee om die huis van God op sy plek te herbou. Hulle het na vermoë tot die boufonds bygedra: 61 000 goue dragme, 5 000 silwermina en 100 priesterrokke. Die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, 'n deel van die volk en die tempeldienaars het in hulle dorpe, en al die ander Israeliete het in hulle dorpe gaan woon. Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. Die volk het toe soos een man in Jerusalem byeengekom. Jesua, seun van Josadak en sy medepriesters, en Serubbabel, seun van Sealtiël en sy ampsgenote, het gereedgemaak en die altaar van die God van Israel gebou om •brandoffers daarop te bring soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, die man van God. Alhoewel hulle bang was vir die mense in die omgewing, het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en hulle het daarop offers vir die Here geoffer, die oggend en die aand se brandoffers. Hulle het ook die Huttefees gevier soos voorgeskryf, en die aantal daaglikse brandoffers soos voorgeskryf vir elke dag, en ook die gereelde brandoffers: die offers met nuwemaan, die offers by al die gewyde •feeste van die Here, sowel as dié by al die vrywillige gawes aan die Here. Vanaf die eerste dag van die sewende maand het hulle die brandoffers vir die Here begin offer. Die fondament van die •tempel van die Here was egter nog nie gelê nie. Toe het hulle die klipkappers en vakmanne met silwer betaal. Die Sidoniërs en Tiriërs is met kos, drank en olyfolie betaal, om met die magtiging van Kores, die koning van Persië, vir hulle sederhout vanaf die Libanon tot by die see by Jafo te bring. In die tweede maand van die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, het Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua, seun van Josadak, en die res van hulle ampsgenote, naamlik die priesters en Leviete, asook almal wat uit die ballingskap in Jerusalem aangekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om oor die daaglikse werk aan die huis van die Here toesig te hou. Jesua, sy seuns en sy ampsgenote, Kadmiël en sy seuns, afstammelinge van Hodauja, moes gesamentlik toesig hou oor diegene wat die werk gedoen het aan die huis van God. Hulle was die nageslag van Genadad; hulle seuns en broers was Leviete. Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here gelê het, het die toesighouers die priesters in ampsdrag gereed laat staan met trompette, en die Leviete, die nageslag van Asaf, met simbale, om die Here te loof volgens die voorskrifte van Dawid, koning van Israel. Terwyl hulle die Here loof en dank, het hulle gesing: “Want Hy is goed, ja, sy troue liefde oor Israel is vir altyd!” Die hele volk het baie hard gejuig toe die Here geloof is, omdat die fondament van die huis van die Here gelê is. Baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, die oumense wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondamente van hierdie huis voor hulle oë gelê is, maar baie ander het hardop uitgeroep van vreugde. Niemand van die volk kon die klank van die vreugdekrete onderskei van die klank van die volk se gehuil nie, want die volk het so hard geskreeu dat dit baie ver gehoor kon word. Toe die vyande van Juda en Benjamin hoor dat die teruggekeerde ballinge besig was om 'n •tempel vir die Here, die God van Israel, te bou, het hulle Serubbabel en die familiehoofde genader met die versoek: “Laat ons julle help bou, want soos julle, streef ons ook die wil van julle God na. Ons bring al aan Hom offers sedert Esarhaddon, koning van Assirië, ons hierheen gebring het.” Serubbabel en Jesua en die res van die familiehoofde van Israel antwoord hulle toe: “Julle het niks met ons te doen wanneer dit kom by die bou van die huis van ons God nie, want ons alleen sal dit vir die Here, die God van Israel bou, soos Kores, koning van Persië, ons beveel het.” Die volk van die land wou toe die volk van Juda probeer ontmoedig en hulle afskrik om te bou. Hulle het ook dwarsdeur die bewindstyd van Kores, koning van Persië, tot in die regeringstyd van Darius, koning van Persië, raadgewers teen hulle gehuur om hulle planne te verydel. Reeds aan die begin van Ahasveros se bewind het hulle 'n klagskrif teen die inwoners van Juda en Jerusalem opgestel, en in die dae van Artasasta het Bislam, Mitredat, Tabeël en die res van hulle ampsgenote aan die koning van Persië 'n brief geskryf. Dit is in •Aramees geskryf, en vertaal. In Aramees: Daarna het Regum, hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, die volgende brief aan koning Artasasta oor Jerusalem geskryf. Van Regum, hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, en ook die res van hulle ampsgenote; die regters, amptenare, Persiese gesante, verteenwoordigers van Uruk, Babiloniërs en Susa se Elamiete, en van die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaria laat woon het, en van die res van die mense van Wes-Eufraat. Dit is 'n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: “Aan Artasasta, die koning. Van u dienaars, die mense van Wes-Eufraat. “ Ons stel die koning in kennis dat die Judeërs wat van u af vertrek het, by ons aangekom het en in Jerusalem is. Hulle herbou daardie opstandige en slegte stad. Nadat hulle die fondamente reggemaak het, is hulle nou besig om die mure op te rig. Laat die koning dan nou weet dat, sodra daardie stad herbou is en die mure voltooi is, hulle nie meer belasting, heffings en tolgeld sal betaal nie, en dat die koning se inkomste daaronder sal ly. Aangesien ons lojaal is aan die koning en omdat dit nie vir ons reg is om te sien dat die koning se eer aangetas word nie, stuur ons hierdie brief om die koning in te lig, sodat dit in die kronieke van u voorgangers nageslaan kan word. U sal in die kronieke vind dat hierdie stad nog altyd 'n opstandige stad was wat skade veroorsaak het vir die konings en die provinsies en wat opstand in hulle midde gestook het. Dit is waarom dit vernietig is. Ons deel die koning mee dat, wanneer daardie stad herbou is en die mure voltooi is, u nie meer enige beheer oor Wes-Eufraat sal hê nie.” Die koning het toe die volgende boodskap gestuur: “Aan Regum, die hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, en die res van hulle ampsgenote wat in Samaria woon, en aan die res van die mense van Wes-Eufraat: Vrede! “ Die brief wat julle aan ons gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees. Ek het toe opdrag gegee en ondersoek is ingestel; en daar is bevind dat daardie stad hom van altyd af teen konings verset het en dat opstand en oproer daar gestook is. Daar was al magtige konings oor Jerusalem. Hulle het oor die hele Wes-Eufraat regeer en belasting, heffings en tolgeld is aan hulle betaal. Gee daarom opdrag dat hierdie manne moet ophou werk. Daardie stad mag nie herbou word totdat ek die opdrag gee nie. Wees versigtig om nie nalatig hiermee te wees nie. Waarom moet die koning deur nog groter skade benadeel word?” Onmiddellik nadat die afskrif van die brief van koning Artasasta aan Regum en Simsai, die sekretaris, en hulle ampsgenote voorgelees is, het hulle inderhaas na Jerusalem gegaan, na die Judeërs, en hulle met mag en geweld gedwing om die werksaamhede te staak. Die werk aan die huis van die God van Jerusalem is toe gestaak tot in die tweede regeringsjaar van Darius, koning van Persië. Toe het die profete Haggai en Sagaria, kleinseun van Iddo, teen die Judeërs in Juda en Jerusalem begin profeteer in die naam van die God van Israel onder wie se gesag hulle gestaan het. Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua, seun van Josadak, het gereedgemaak en die bouwerk aan die huis van die God van Jerusalem hervat. Hulle is daarin ondersteun deur die profete van God. In daardie tyd het Tattenai, •streekgoewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote na hulle gekom en vir hulle gevra: “Wie het julle opdrag gegee om hierdie huis te herbou en hierdie struktuur te voltooi?” Hulle het ook gevra: “Wat is die name van die manne wat hierdie gebou oprig?” Maar hulle God het 'n oog gehou oor die oudstes van die Judeërs en daardie manne kon dit nie regkry dat hulle ophou bou voordat die verslag Darius bereik en hulle die beslissing hieroor ontvang het nie. Hier volg die afskrif van die brief wat Tattenai, streekgoewerneur van Wes-Eufraat, asook Setar-Bosnai en sy ampsgenote, die amptenare van Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het. Hulle het soos volg geskryf in die brief wat hulle aan hom gestuur het: “Aan koning Darius: Alle vrede! “ Ons stel graag die koning in kennis dat ons na die provinsie Juda gegaan het, na die huis van die groot God. Dit word met groot klippe gebou en balke word in die mure gelê. Die werk word sorgvuldig gedoen en vorder goed onder hulle hande. Ons het daardie oudstes toe uitgevra, en dit is wat ons vir hulle gesê het, ‘Wie het julle opdrag gegee om hierdie huis te herbou en hierdie struktuur te voltooi?’ Ons het hulle ook hulle name gevra sodat ons die name van die manne wat aan die hoof staan vir u ter inligting kon neerskryf. “ Hulle het ons soos volg geantwoord, ‘Ons is die dienaars van die God van hemel en aarde en ons herbou die huis wat baie jare voor hierdie een gebou is. 'n Groot koning van Israel het dit gebou en voltooi. Maar omdat ons voorouers die God van die hemel kwaad gemaak het, het Hy hulle in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, die Galdeër, oorgelewer. Hy het hierdie huis afgebreek en die volk na Babilonië weggevoer. Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babilonië, het koning Kores opdrag gegee dat hierdie huis van God herbou moet word. Ook die voorwerpe van goud en silwer van die huis van God wat Nebukadnesar uit die tempel wat in Jerusalem was, weggeneem het en na die tempel in Babel geneem het, het koning Kores verwyder uit die tempel in Babel. Dit is oorhandig aan 'n persoon met die naam Sesbassar wat hy as streekgoewerneur aangestel het. Hy het ook vir hom gesê: “Neem hierdie voorwerpe en gaan sit dit terug in die tempel in Jerusalem en laat die huis van God op sy plek herbou word.” Toe het daardie Sesbassar gekom en die fondament van die huis van die God van Jerusalem gelê. Dit is van toe af tot nou in aanbou en is nog nie voltooi nie. “ ‘Daarom, as die koning dit goedvind, laat daar ondersoek ingestel word in die koninklike skatkamers daar in Babel of dit so is dat koning Kores opdrag gegee het vir die herbou van hierdie huis van God in Jerusalem. Die koning moet dan sy beslissing hieroor vir ons stuur.’ ” Toe het koning Darius opdrag gegee en ondersoek is ingestel in die argiewe waar kosbaarhede daar in Babel bewaar word. In die vesting Agmeta, in die provinsie Medië, is 'n •boekrol gevind waarin daar die volgende geskryf staan: “'n Verslag: “ In sy eerste regeringsjaar het koning Kores die volgende opdrag gegee, ‘Wat betref die huis van God in Jerusalem: Die huis moet gebou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet gelê word; die hoogte moet sestig el en die breedte sestig el wees, gebou met drie lae groot klippe en 'n laag nuwe hout. Die boukoste sal uit die koninklike skatkis gedelg word. En verder: Die voorwerpe van goud en silwer van die huis van God wat •Nebukadnesar uit die •tempel wat in Jerusalem was, verwyder en na Babel gebring het, moet teruggestuur word, en na die •tempel in Jerusalem, hulle plek, gaan. Sit dit in die huis van God.’ ” “ Aan Tattenai, •streekgoewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai, en julle ampsgenote, die amptenare wat wes van die Eufraat is: “Bly weg daar! Laat die werk aan daardie huis van God voortgaan. Laat die Judeërs se streekgoewerneur en hulle oudstes daardie huis van God op sy plek herbou! Ek gee nou opdrag oor wat julle saam met hierdie oudstes van die Judeërs moet doen om daardie huis van God te bou: Uit die koninklike staatskas – in besonder uit die belasting van Wes-Eufraat – moet die uitgawes van daardie manne ten volle vergoed word, sodat die werk nie onderbreek word nie. En wat hulle nodig het, jong bulle, ramme en lammers as •brandoffers vir die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie, moet, op versoek van die priesters in Jerusalem, daagliks en stiptelik aan hulle gelewer word, sodat hulle offers met 'n aangename geur aan die God van die hemel kan bring, en kan bid vir die lewe van die koning en sy seuns. “ Ek gee ook opdrag dat elke persoon wat hierdie beslissing wysig, met 'n balk wat uit sy huis geruk is, deurboor en opgehang moet word. Van sy huis moet ook 'n puinhoop gemaak word. “En mag die God wat sy Naam daar laat woon, elke koning en volk tot 'n val bring wat 'n hand uitsteek om hierdie beslissing te wysig en sodoende daardie huis van God wat in Jerusalem is, te vernietig. Ek, Darius, gee so opdrag. Dit moet noukeurig uitgevoer word.” Daarna het Tattenai, die streekgoewerneur van Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en hulle ampsgenote dit net so, op grond van die brief wat koning Darius gestuur het, noukeurig uitgevoer. Die oudstes van die Judeërs het aanhou bou en was voorspoedig, danksy die profetiese prediking van die profeet Haggai en Sagaria, seun van Iddo. Hulle het gebou en die werk voltooi volgens die opdrag van die God van Israel en die opdragte van Kores, Darius en Artasasta, die konings van Persië. Hierdie huis is op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar van koning Darius se regering voltooi. Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die res van die ballinge het die wyding van hierdie huis van God met vreugde gevier. Vir die wyding van hierdie huis van God het hulle honderd bulle, tweehonderd ramme en vierhonderd lammers geoffer, en, in ooreenstemming met die getal stamme van Israel, ook nog twaalf bokramme as •reinigingsoffer vir die hele Israel. Hulle het die priesters in hulle afdelings en die Leviete in hulle groepe opgestel vir die diens van God wat in Jerusalem is, soos dit in die boekrol van Moses geskryf staan. Die ballinge het die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand gevier: Die priesters en Leviete het hulle soos een man gereinig, en toe hulle almal rein was, het die Leviete die Pasgalam geslag vir al die ballinge, vir hulle ampsgenote, die priesters, en vir hulleself. Die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekeer het, het die Pasga geëet. En almal wat hulle afgeskei het van die •onreinheid van die volk van die land, om die wil van die Here die God van Israel te soek, het dit ook gedoen. Hulle het die Fees van die ongesuurde Brood sewe dae lank met blydskap gevier, want die Here het hulle bly gemaak deurdat Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, sodat hy hulle hande gesterk het vir die werk aan die huis van God, die God van Israel. Ná hierdie gebeure, tydens die regering van Artasasta, koning van Persië, het Esra na vore getree. Hy was 'n seun van Seraja, seun van Asarja, seun van Gilkija, seun van Sallum, seun van Sadok, seun van Agitub, seun van Amarja, seun van Asarja, seun van Merajot, seun van Seragja, seun van Ussi, seun van Bukki, seun van Abisua, seun van Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron, die hoëpriester. Hierdie Esra het opgetrek uit Babilonië. Hy was self 'n skrifgeleerde, kundig in die Wet van Moses wat die Here, die God van Israel, gegee het. Die koning het alles wat hy gevra het aan hom gegee, omdat die Here, sy God, se hand oor hom was. Nog ander Israeliete en van die priesters, die Leviete, die sangers, poortwagte en tempeldienaars het ook in die sewende regeringsjaar van koning Artasasta na Jerusalem opgetrek. Esra het in die vyfde maand in Jerusalem aangekom. Dit was in die sewende regeringsjaar van die koning: Die reis uit Babilonië het begin op die eerste dag van die eerste maand en hy het op die eerste dag van die vyfde maand in Jerusalem aangekom, omdat die goeie hand van sy God oor hom was. Esra het hom immers daarop toegelê om die Wet van die Here te bestudeer en dit te gehoorsaam en om die voorskrifte en reëls in Israel vir mense te leer. Dit is 'n afskrif van die brief wat koning Artasasta gegee het aan Esra die priester, die skrifgeleerde, kenner van sake in verband met die wette van die Here en sy voorskrifte aan Israel: “ Artasasta, koning van die konings, aan Esra, die priester, kenner van die wet van die God van die hemel: “Gegroet! “ Ek het opdrag gegee dat enigiemand in my koninkryk uit die volk Israel en van sy priesters en Leviete wat gewillig is om na Jerusalem te gaan, saam met jou mag gaan. Daarom word jy deur die koning en sy sewe raadgewers gestuur om ondersoek in te stel oor Juda en Jerusalem, in ooreenstemming met die wet van jou God wat jy ter hand het, en om die silwer en goud saam te neem wat die koning en sy raadgewers vrywillig bygedra het vir die God van Israel wie se woning in Jerusalem is, asook al die silwer en goud wat jy in die hele provinsie Babel sal vind, sowel as die vrywillige bydraes van die volk en die priesters wat hulle gee vir die huis van hulle God wat in Jerusalem is. Jy moet daarna noukeurig aankope doen met hierdie geld: bulle, ramme, lammers en •graan- en •drankoffers wat daarby hoort. Offer dit dan op die altaar van die huis van julle God wat in Jerusalem is. “En wat jy en jou ampsgenote ook al goed mag vind om met die res van die silwer en die goud te doen, doen dit in ooreenstemming met die wil van julle God. Die tempelgerei wat aan jou oorhandig word vir die dienswerk in die huis van jou God moet jy aflewer voor die God van Jerusalem. Die res van wat benodig word vir die huis van jou God en wat jy dalk moet verskaf, kan jy betaal uit die staatskas van die koning. “ Ek, koning Artasasta, het die volgende opdrag gegee aan al die tesouriere in Wes-Eufraat, ‘Alles wat Esra, die priester, kenner van die wet van die God van die hemel, julle vra, moet noukeurig gelewer word, tot 'n honderd kikkar silwer en 'n honderd kor koring en 'n honderd bat wyn en 'n honderd bat olie en sout sonder beperking. Alles wat in ooreenstemming met die bevel van die God van die hemel is, moet vir die huis van die God van die hemel op die regte manier uitgevoer word; want waarom moet die toorn van God rus op die ryk van die koning en sy seuns? Verder word julle ook in kennis gestel dat dit nie toelaatbaar is om van enige van die priesters en Leviete, sangers, poortwagte, tempeldienaars en ander dienaars in hierdie huis van God, belasting, heffings en tolgeld te vra nie.’ “ En jy, Esra, deur die wysheid van jou God waaroor jy beskik, moet jy regsamptenare en regters aanstel wat die regsake van die hele volk in Wes-Eufraat kan behartig, almal wat die wette van jou God ken. En as iemand dit nie ken nie, moet julle hom leer. Teen elkeen wat nie die wet van jou God en die wet van die koning onderhou nie, moet streng geregtelike stappe gedoen word, hetsy deur die doodstraf, verbanning, beslaglegging of tronkstraf.” Lofwaardig is die Here, die God van ons voorouers! Dit is Hy wat dit op so 'n manier in die koning se hart gelê het om luister te verleen aan die huis van die Here wat in Jerusalem is, en wat aan my sy troue liefde bewys het voor die koning en sy raadgewers en al die magtige amptenare van die koning. En ek, ek het moed geskep omdat die hand van die Here my God oor my was, en ek het besluit om die familiehoofde uit Israel bymekaar te laat kom om saam met my te reis. Dit is die familiehoofde, met hulle geslagsregisters, wat tydens die regering van koning Artasasta saam met my opgetrek het uit Babilonië: Gersom, uit die nageslag van Pinehas; Daniël, uit die nageslag van Itamar; Gattus, uit die nageslag van Dawid; manne uit die nageslag van Seganja; Sagaria, uit die nageslag van Paros – saam met hom is 150 manne in die geslagsregister opgeneem; Eljehoënai, seun van Seragja, uit die nageslag van Pagat-Moab – saam met hom 200 manne; Seganja, seun van Jagasiël, uit die nageslag van Sattu – saam met hom 300 manne; Ebed, seun van Jonatan, uit die nageslag van Adin – saam met hom 50 manne; Jesaja, seun van Atalia, uit die nageslag van Elam – saam met hom 70 manne; Sebadja, seun van Migael, uit die nageslag van Sefatja – saam met hom 80 manne; Obadja, seun van Jegiël, uit die nageslag van Joab – saam met hom 218 manne; Selomit, seun van Josifja, uit die nageslag van Bani – saam met hom 160 manne; Sagaria, seun van Bebai, uit die nageslag van Bebai – saam met hom 28 manne; Joganan, seun van Katan, uit die nageslag van Asgad – saam met hom 110 manne; manne wat agterna gekom het uit die nageslag van die seuns van Adonikam, naamlik Elifelet, Jeïel en Semaja – saam met hulle 60 manne; Utai, uit die nageslag van Bigwai en ook Sakur – saam met hom 70 manne. Ek het hulle bymekaargebring by die rivier wat na Ahawa loop. Daar het ons drie dae lank kamp opgeslaan. Ek kom toe agter dat daar onder die volk en die priesters geen Leviete was nie. Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam, die familiehoofde, asook Jojarib en Elnatan, verstandige manne, ontbied en hulle beveel om na Iddo, die hoof van die heilige plek by Kasifja, te gaan. Ek het aan hulle voorgesê wat hulle in Kasifja, die heilige plek, aan Iddo, sy ampsgenote en die tempeldienaars moes oordra, naamlik dat hulle vir ons dienaars vir die huis van ons God moet voorsien. Omdat die goeie hand van ons God oor ons was, het hulle vir ons Serebja gestuur, 'n verstandige man uit die nageslag van Magli, seun van Levi, seun van Israel, asook sy seuns en ampsgenote, 18 manne; en ook Gasabja, en saam met hom Jesaja, uit die nageslag van Merari, sy ampsgenote en hulle seuns, 20 manne; en van die tempeldienaars wat Dawid en die •hoë amptenare gegee het om die Leviete by te staan, 220 manne, almal by die naam aangewys. By die Ahawarivier het ek toe 'n vastyd uitgeroep. Die bedoeling was dat ons onsself voor ons God sou verootmoedig om van Hom 'n voorspoedige reis te vra vir onsself, ons afhanklikes en al ons besittings, omdat ek te skaam was om van die koning soldate en perderuiters te vra om ons op die pad te beskerm teen vyande. Ek het immers vir die koning gesê: “Die hand van ons God is ten goede uitgestrek oor almal wat Hom raadpleeg, maar sy mag en sy toorn tref almal wat Hom verlaat.” Ons het toe gevas en hieroor ons God se hulp gevra en Hy het ons gebede verhoor. Daarna het ek twaalf van die leiers van die priesters afgesonder: Serebja en Gasabja, asook tien van hulle ampsgenote. En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die bydraes vir die huis van ons God wat die koning, sy raadgewers en hoë amptenare en die hele Israel wat daar teenwoordig was, gemaak het. Ek het dit op hulle hande afgeweeg: 650 kikkar silwer, 100 voorwerpe van silwer met 'n gewig van 2 kikkar, 100 kikkar goud, asook 20 goue bakke wat 1 000 dariek werd is en 2 voorwerpe van glansende geelkoper, so waardevol soos goud. En ek het vir hulle gesê: “Julle is gewy aan die Here, en die voorwerpe is heilig. Die silwer en die goud is 'n vrywillige gawe aan die Here, die God van julle voorouers. Pas dit versigtig op totdat julle dit in die vertrekke van die huis van die Here in Jerusalem afweeg in die teenwoordigheid van die leiers van die priesters en die Leviete en die leiers van die families van Israel.” Die priesters en die Leviete het toe die geweegde silwer en goud en die voorwerpe in ontvangs geneem om dit na Jerusalem, na die huis van ons God te neem. Ons het toe op die twaalfde dag van die eerste maand vanaf die Ahawarivier na Jerusalem vertrek. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons gered uit die greep van vyande en uit hinderlae langs die pad. Ons het by Jerusalem aangekom en drie dae lank daar gebly. Op die vierde dag is die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van ons God afgeweeg in die hand van Meremot, die priester en seun van Uria. Eleasar, die seun van Pinehas, was saam met hom, en ook die Leviete Josabad, seun van Jesua, en Noadja, seun van Binnuï. Alles is getel en geweeg en die totale gewig is terselfdertyd opgeteken. Die ballinge wat uit die ballingskap aangekom het, het •brandoffers gebring aan die God van Israel: twaalf bulle vir die hele Israel, ses-en-negentig ramme, sewe-en-sewentig lammers, en twaalf bokke as •reinigingsoffer, alles as 'n brandoffer vir die Here. Daarna het hulle die koning se bevele aan die koning se satrape en aan die streekgoewerneurs van Wes-Eufraat oorgedra, en hulle het almal hulle steun gegee aan die volk en die huis van God. Nadat hierdie sake afgehandel is, het die leiers na my gekom en gesê: “Die volk Israel, die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die naburige volke ten opsigte van die afstootlike gebruike van die Kanaäniete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete, die Ammoniete, die Moabiete, die Egiptenare en die Amoriete nie, maar van die dogters uit dié nasies vir hulle en vir hulle seuns as vroue geneem. So het die heilige saad vermeng geraak met die naburige volke. Die leiers en gesagsdraers het die voortou geneem met hierdie ontrouheid.” Toe ek hiervan hoor, het ek my klere en my mantel geskeur en die hare uit my kop en baard gepluk. Ek het verslae gaan sit. Almal wat ontsag het vir die woorde van die God van Israel, het by my saamgekom oor die ontrouheid van die ballinge, en ek het tot met die aandoffer verslae gesit. Met die aandoffer het ek opgestaan van waar ek in ootmoed geboë was, en met geskeurde klere en mantel op my knieë gaan staan en my handpalms na die Here my God uitgesteek. Ek het gesê: “My God, ek is te skaam en verleë om my gesig na U, my God, op te lig, want ons sonde het hoër as ons koppe opgestapel en ons skuld strek tot aan die hemel. Van die tyd van ons voorvaders tot op hierdie dag is ons skuld groot. As gevolg van ons sondes is ons, ons konings en ons priesters uitgelewer aan die mag van die konings van ander lande, aan die swaard, gevangenskap, plundering en beskaming, soos dit vandag nog is. En nou, vir 'n kort oomblik, was daar genade van die Here ons God om vir ons vrygeraaktes te laat oorbly, en vir ons vastigheid in sy heilige gebied te gee, om ons oë te verhelder en ons 'n bietjie nuwe lewe in ons slawerny te gee. Ons is inderdaad slawe, maar in ons slawerny het ons God ons nie verlaat nie. Hy het sy troue liefde oor ons uitgestrek voor die konings van Persië om aan ons nuwe lewe te gee, om die huis van ons God weer op te rig en die ruïnes daarvan te herstel en vir ons 'n skans in Juda en Jerusalem te gee. “ Ons God, wat kan ons dan nou in die lig hiervan sê? Want ons het u opdragte verontagsaam wat U by monde van u dienaars, die profete, beveel het, ‘Die land waar julle ingaan met die doel om dit in besit te neem, is 'n besoedelde land. Dit is deur die nasies in daardie streke besoedel met hulle afstootlike gebruike. Hulle het dit van hoek tot kant gevul met hulle •onreinheid. Moet daarom nie julle dogters aan hulle seuns gee nie, en moet ook nie hulle dogters vir julle seuns as vroue neem nie. Julle mag vir ewig nie hulle vrede en voorspoed nastreef nie, sodat julle sterk kan wees en die goeie van die land kan geniet en dit vir altyd aan julle kinders kan nalaat.’ “ U, ons God, het ons sondeskuld minder geag as wat dit werklik is en van ons, soos ons hier is, laat vry word. Sal ons dan nou werklik, ná alles wat oor ons gekom het deur ons bose dade en ons groot skuld, tog wéér u bevele minag en ondertrou met die volke wat hierdie gruweldade pleeg? Gaan U toornig bly op ons totdat ons vernietig is, en daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie? Here, God van Israel, U is regverdig, en tog het U ons laat oorbly as mense wat vry geraak het, soos dit vandag is. Hier is ons voor U met ons skuld, omdat niemand hieroor voor U kan bly staan nie.” Terwyl Esra bid en belydenis doen, huil en homself neerwerp voor die huis van God, het daar uit Israel 'n baie groot menigte, mans, vroue en kinders, om hom versamel; want die mense het self ook bitterlik gehuil. Seganja, die seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het begin praat en vir Esra gesê: “Ons was ontrou teenoor ons God toe ons vreemde vroue van die naburige volke getrou het. Maar tog is daar hoop vir Israel in hierdie saak. Laat ons dan nou 'n verbond met ons God sluit om al die vroue en diegene wat uit hulle gebore is, weg te stuur, soos u, meneer, en ook die manne wat ontsag het vir ons God se gebod, ons aanraai. Daar moet volgens die wet opgetree word. Staan op, want die saak is in u hande. Ons is saam met u. Wees onwrikbaar en doen dit.” Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle hiervolgens sal optree. Hulle het toe ook so gesweer. Nadat Esra opgestaan het voor die huis van God, het hy na die vertrek van Joganan, seun van Eljasib, gegaan. Hy het daarheen gegaan, maar glad nie brood geëet of enige water gedrink nie, omdat hy oor die ballinge se ontrouheid gerou het. Hulle het toe 'n boodskap dwarsdeur Juda en Jerusalem aan al die ballinge gestuur om in Jerusalem bymekaar te kom. Elkeen wat nie binne drie dae sou opdaag soos die leiers en oudstes besluit het nie, se eiendom sou onder die ban wees en hyself sou uitgesluit word uit die gemeenskap van die ballinge. Al die manne van Juda en Benjamin het toe binne drie dae in Jerusalem bymekaargekom. Dit was in die negende maand, op die twintigste dag van die maand. Die hele volk het op die plein van die huis van God gesit en bewe van spanning hieroor, en ook as gevolg van die reënbuie. Esra, die priester, het opgestaan en vir hulle gesê: “Julle was ontrou toe julle met vreemde vroue getrou het. Dit het daartoe bygedra om die skuld van Israel te vergroot! Daarom, doen nou belydenis voor die Here, die God van julle voorgeslagte. Doen sy wil en skei julle af van die naburige volke en doen afstand van die vreemde vroue.” Toe het die hele gemeenskap hardop geantwoord: “Ja! Ons is verplig om te doen wat u sê! Maar hier is baie mense en dit is reëntyd. Ons het nie krag om buite te staan nie. Dit is nie 'n dag of twee se werk nie, want ons het baie oortree in hierdie saak. Laat ons leiers asseblief namens die hele gemeenskap optree. Dan kan almal in ons dorpe wat met vreemde vroue getrou het, op vasgestelde tye saam met die oudstes en regters van elke dorp kom, sodat die brandende toorn van ons God oor hierdie saak van ons afgewend word.” Net Jonatan, seun van Asael, en Jagseja, seun van Tikwa, het dit teengestaan, en Mesullam en Sabbetai, die Leviet, het hulle ondersteun. Die ballinge het toe so gemaak. Vir die taak is Esra, die priester, afgesonder, asook manne wat familiehoofde was, almal by die naam, om namens hulle families op te tree. Op die eerste dag van die tiende maand het hulle gaan sit om die ondersoek te begin, en teen die eerste dag van die eerste maand het hulle die saak van al die manne wat met vreemde vroue getroud was, afgehandel. Daar is gevind dat daar van die afstammelinge van priesters was wat met vreemde vroue getrou het: Uit die nageslag van Jesua, seun van Josadak, en sy familie, was dit Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja (hulle het plegtig beloof dat hulle hulle vroue sou wegstuur en dat hulle 'n ram uit die kleinvee as 'n skuldoffer sou bring); uit die nageslag van Immer was dit Ganani en Sebadja; uit die nageslag van Garim was dit Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija; uit die nageslag van Pasgur was dit Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa. Daar was ook van die Leviete, naamlik Josabad, Simeï, Kelaja (dit is Kelita), Petagja, Juda en Eliëser. Van die sangers was daar Eljasib. Van die hekwagte was daar Sallum, Telem en Uri. Daar was ook van die Israeliete: Uit die nageslag van Paros was dit Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja; uit die nageslag van Elam was dit Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia; uit die nageslag van Sattu was dit Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa; uit die nageslag van Bebai was dit Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai; uit die nageslag van Bani was dit Mesullam, Mallug en Adaja, Jasub, Seal en Jeremot; uit die nageslag van Pagat-Moab was dit Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse; uit die nageslag van Garim was dit Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simeon, Benjamin, Mallug en Semarja; uit die nageslag van Gasum was dit Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simeï; uit die nageslag van Bani was dit Maädai, Amram, Uel, Benaja, Bedja, Keluhi, Wanja, Meremot, Eljasib, Mattanja, Mattenai, Jaäsai, Bani, Binnuï, Simi, Selemja, Natan, Adaja, Magnadbai, Sasai, Sarai, Asarel, Selemja, Semarja, Sallum, Amarja en Josef; uit die nageslag van Nebo was dit Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja. Al hierdie mans het met vreemde vroue getrou, en daar was van hulle wat by die vroue kinders gehad het. Die woorde van Nehemia, seun van Gagalja. Dit het gebeur in die maand Kislef, in die twintigste regeringsjaar, toe ek in die vestingstad Susan was. Ganani, een van my broers, het daar aangekom, hy en manne van Juda. Ek het hulle uitgevra oor die Judeërs wat ontkom het – die Judeërs wat die ballingskap oorleef het – en oor Jerusalem. Hulle sê toe vir my: “Dié wat nog in die provinsie is en die ballingskap oorleef het, ervaar groot probleme en vernedering. Die muur van Jerusalem is afgebreek en sy stadspoorte is deur vuur verwoes.” Toe ek hierdie woorde hoor, het ek gaan sit en huil; ek het dae lank getreur. Ek het aanhou vas en voor die God van die hemel gebid. Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God, wat die verbond en trou handhaaf vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom, laat u oor asseblief aandagtig wees, en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u dienskneg wat ek vandag, wat ek dag en nag voor U bid oor die Israeliete, u diensknegte, die gebed waarmee ek die sondes van die Israeliete bely wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. Ons het ons uiters sleg gedra teenoor U en nie die gebooie, vaste voorskrifte en bepalings nagekom wat U u dienskneg Moses beveel het nie. Onthou asseblief die woord wat U u dienskneg Moses opgedra het, ‘As julle ontrou is, sal Ek julle verstrooi onder die volke, maar as julle na My terugkeer en my gebooie nakom en dit uitvoer – selfs al is julle verstrooi tot aan die einde van die aarde – sal Ek julle daarvandaan bymekaarmaak en na die plek bring wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon. ’ Hulle is tog u dienaars en u volk wat U deur u groot mag en met u sterk hand bevry het. Ag my Heer, laat u oor asseblief aandagtig gerig wees op die gebed van u dienskneg en op die gebed van u diensknegte, wat vreugde daarin vind om ontsag vir u Naam te hê. Laat u dienskneg asseblief vandag slaag, en gee dat daar vir hom barmhartigheid sal wees by hierdie man. ” Ek was in daardie tyd die koning se skinker. In die maand •Nisan, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, het die wyn gereedgestaan voor hom. Ek het die wyn geneem en vir die koning aangebied. Ek was gewoonlik nie treurig voor hom nie. Die koning vra toe vir my: “Waarom is jou gesig so somber? Jy is tog nie siek nie. Dit kan niks anders as 'n treurige hart wees nie.” Ek het baie bang geword en vir die koning gesê: “Mag die koning vir ewig lewe! Waarom sou my gesig nie somber wees wanneer die stad, die plek van my voorouers se grafte, vervalle lê en sy poorte deur vuur verteer is nie? ” Toe vra die koning vir my: “Wat is dit wat jy wil hê?” Ek het tot die God van die hemel gebid en vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, en as u dienaar by u aanvaarding vind, moet u my na Juda stuur, na die stad van my voorouers se grafte, sodat ek dit kan herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer kom jy terug?” Die koning het dit goedgevind en my laat gaan. Ek het vir hom 'n bepaalde tyd gegee en vir die koning gesê: “As dit die koning geval, kan daar briewe aan my gegee word, gerig aan die •streekgoewerneurs anderkant die Rivier, sodat ek ongehinderd kan deurtrek totdat ek in Juda aankom; ook 'n brief aan Asaf, die opsigter by die koning se bos, dat hy hout vir my moet gee om as balke te gebruik vir die poorte van die vesting by die •tempel, vir die stadsmuur en vir die huis waarin ek sal tuisgaan.” Die koning het die briewe vir my gegee, omdat die goeie hand van my God oor my was. Ek het by die streekgoewerneurs oorkant die Rivier aangekom en vir hulle die briewe van die koning gegee. Die koning het saam met my ook die bevelvoerders van die leër en 'n ruitery gestuur. Toe Sanballat uit Goron, en Tobija, die Ammonitiese amptenaar, dit hoor, het dit hulle baie sleg getref dat iemand gekom het om die Israeliete se welstand te bevorder. Ek het by Jerusalem aangekom, en toe ek drie dae lank daar was, het ek in die nag gereedgemaak, ek en 'n paar manne saam met my. Ek het egter niemand ingelig oor wat my God my op die hart gelê het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was nie 'n dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag deur die Dalpoort uitgegaan, by die Jakkalsfontein langs na die Ashooppoort. Ek het die muur van Jerusalem wat afgebreek was en die poorte wat deur vuur verteer was, nagegaan. Toe het ek oorgegaan na die Fonteinpoort, na die koning se dam, maar daar was nie 'n plek waar my rydier kon deurgaan nie. Ek het toe in die nag met die dal langs opgegaan en die muur nagegaan, waarna ek teruggekeer en weer by die Dalpoort ingegaan het. Die gesagsdraers het nie geweet waarheen ek gegaan het en wat ek besig was om te doen nie. Die Judeërs, die priesters, die hoëlui, die leiers en die res wat die werk moes doen, het ek tot op daardie stadium nie ingelig nie. Toe sê ek vir hulle: “Julle sien die moeilikheid waarin ons verkeer, dat Jerusalem vervalle lê en dat haar poorte deur vuur verwoes is. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, sodat ons nie langer 'n bespotting is nie. ” Ek lig hulle toe in dat die hand van my God goed was oor my, en verder ook oor die woorde van die koning wat hy vir my gesê het. Hulle het gesê: “Ons sal gereedmaak en herbou.” So het hulle moed geskep vir die goeie werk. Maar toe Sanballat uit Goron, Tobija, die Ammonitiese amptenaar, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle met ons die spot gedryf en ons veragtend aangespreek: “Wat is hierdie saak waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” Ek het hulle toe geantwoord. Ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal. Ons, sy diensknegte, sal gereedmaak en herbou. Maar julle het geen deel aan, geen reg op, of geen nalatenskap in Jerusalem nie.” Eljasib, die hoëpriester en sy ampsgenote, die priesters, het gereedgemaak en die Skaappoort herbou. Hulle het dit self geheilig en die poortdeure ingesit. Tot by die Toring van die Honderd het hulle dit geheilig, ook tot by die Toring van Gananel. Langs hulle het die manne van Jerigo gebou. Langs hulle het Sakkur, seun van Imri, gebou. Die Vispoort is deur die seuns van Hassenaä herbou. Hulle het die balke gelê en die poortdeure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Langs hulle het Meremot, seun van Urija, seun van Kos, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Mesullam, seun van Beregja, seun van Mesesabel, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Sadok, seun van Baäna, herstelwerk gedoen. Langs hulle het mense van Tekoa herstelwerk gedoen, maar die vernames onder hulle het nie hulle nekke onder die juk van hulle Heer se werk gesit nie. Die Jesanapoort het Jojada, seun van Paseag, en Mesullam, seun van Basodja, herstel. Hulle het die balke gelê en die poortdeure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Langs hulle het Melatja, uit Gibeon, en Jadon, uit Meronot, herstelwerk gedoen. Die manne van Gibeon en Mispa het behoort tot die ampsgebied van die •streekgoewerneur wes van die Rivier. Langs hulle het Ussiël, seun van Garhaja, 'n lid van die goudsmede, herstelwerk gedoen. Langs hom het Gananja, 'n lid van die salfmengers, herstelwerk gedoen. Hulle het Jerusalem opgeknap tot by die Breë Muur. Langs hulle het Refaja, seun van Gur, die bevelvoerder van die helfte van die Jerusalem-distrik, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Jedaja, seun van Garumaf, reg voor sy huis die herstelwerk gedoen. Langs hom het Gattus, seun van Gasabneja, herstelwerk gedoen. 'n Tweede afgemete deel, het Malkija, seun van Garim, en Gassub, seun van Pagat-Moab, herstel, en ook die Toring van die Oonde. Langs hulle het Sallum, seun van Halloges, die bevelvoerder van die ander helfte van die Jerusalem-distrik, herstelwerk gedoen, hy en sy dogters. Die Dalpoort is deur Ganun en die inwoners van Sanoag herstel. Hulle het dit self herbou, die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit, en ook duisend el van die stadsmuur herstel, tot by die Ashooppoort. Die Ashooppoort is deur Malkija, seun van Regab, bevelvoerder van die Bet-Hakkêrêm-distrik, herstel. Hy het dit self herbou en die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Die Fonteinpoort is deur Sallun, seun van Kol-Gose, die bevelvoerder van die Mispa-distrik, herstel. Hy het dit self herbou, die dak opgesit en die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit; so ook die stadsmuur by die dam van die watervoor wat na die koningstuin loop, tot by die trappe wat afgaan vanaf die Stad van Dawid. Daar langsaan het Nehemia, seun van Asbuk, bevelvoerder van die helfte van die Bet-Sur-distrik, herstelwerk gedoen tot regoor die grafte van Dawid, en ook verder tot by die geboude dam en die Huis van die Helde. Daar langsaan het die Leviete onder Regum, seun van Bani, herstelwerk gedoen. Langs hom het Gasabja, die bevelvoerder van die helfte van die Keïla-distrik herstelwerk namens sy distrik gedoen. Daar langsaan het hulle stamgenote onder Binnuï, seun van Genadad, die bevelvoerder van die ander helfte van die Keïla-distrik, herstelwerk gedoen. Langs hom het Eser, seun van Jesua, die bevelvoerder van Mispa, herstelwerk gedoen aan 'n tweede afgemete deel teenoor die opdraande na die wapenhuis, by die hoek. Daar langsaan het Barug, seun van Sabbai, 'n tweede afgemete deel ywerig herstel, vanaf die hoek tot by die ingang na die huis van Eljasib, die hoëpriester. Daar langsaan het Meremot, seun van Urija, seun van Kos, 'n tweede afgemete deel herstel, van die ingang na die huis van Eljasib tot by die einde van die huis van Eljasib. Daar langsaan het die priesters, manne uit die onmiddellike omgewing, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Benjamin en Gassub herstelwerk gedoen, reg voor hulle huis. Daar langsaan het Asarja, seun van Maäseja, seun van Ananja, langs sy huis herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Binnuï, seun van Genadad, 'n tweede afgemete deel herstel, vanaf die huis van Asarja tot by die hoek en tot by die draai van die stadsmuur. Palal, seun van Usai, was aan die bou teenoor die hoek en die boonste toring wat bo die koninklike paleis uittroon, by die binnehof van die paleiswag. Daar langsaan was dit Pedaja, seun van Paros. Die tempeldienaars het op die Ofel gewoon; hulle was besig tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die toring wat daar uittroon. Daar langsaan het die mense van Tekoa 'n tweede afgemete deel herstel, regoor die groot toring wat uittroon en verder tot by die muur van die Ofel. Bo die Perdepoort het die priesters herstelwerk gedoen – elkeen regoor sy huis. Daar langsaan het Sadok, seun van Immer, herstelwerk gedoen voor sy huis. Daar langsaan het Semaja, seun van Seganja, die wag by die Oospoort, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Gananja, seun van Selemja, en Ganun, die sesde seun van Salaf, 'n tweede afgemete deel herstel. Daar langsaan het Mesullam, seun van Beregja, herstelwerk gedoen regoor sy kamer. Daar langsaan het Malkija, 'n lid van die goudsmede, herstelwerk gedoen tot by die huis van die tempeldienaars en die handelaars, regoor die Poort vir die Monstering, tot by die bovertrek van die draai van die stadsmuur. Tussen die bovertrek van die draai en die Skaappoort het die goudsmede en handelaars herstelwerk gedoen. Toe Sanballat hoor dat ons besig was om die muur te herbou, het dit hom ontstel en was hy baie geïrriteerd. Hy het die spot gedryf met die Judeërs. Hy het toe in die teenwoordigheid van sy stamgenote en die leër van Samaria gepraat en gesê: “Wat is die miserabele Judeërs besig om te doen? Knap hulle die plek vir hulle op? Gaan hulle offers slag? Gaan hulle dit vandag afhandel? Wil hulle die klippe uit die hope rommel weer gebruik terwyl dit verkool is?” Tobija, die Ammoniet, was langs hom. Hy sê toe: “Wat hulle ook al herbou, as 'n jakkals daarteen opspring, maak hy 'n gat in hulle klipmuur.” Hoor tog, ons God, want ons het veragtelik geword. Keer hulle gespot om op hulle eie koppe, en gee hulle as buit oor in 'n land van gevangenskap. U moet nie hulle sondeskuld bedek nie, en hulle sondes moet nie voor U weggevee word nie, want hulle het U voor die bouers uitgetart. Ons het die stadsmuur opgebou. Die dele van die hele muur is saamgevoeg tot op die helfte van sy hoogte. Die volk se hart was in hulle werk. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod hoor dat die herstelwerk aan die mure om Jerusalem vorder, dat die bresse begin toegaan, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal as 'n eenheid saamgesweer om teen Jerusalem te kom veg, en by my verwarring te veroorsaak. Ons het tot ons God gebid en dag en nag 'n wag teen hulle uitgesit. Juda het gesê: “Die krag van die draers gee in, die puin is te veel. Ons alleen is nie in staat om die muur te herbou nie.” Ons teenstanders het gesê: “Hulle sal nie weet nie, dit nie eers agterkom nie, totdat ons tussen hulle inbeweeg, hulle doodmaak en 'n einde aan die werk maak.” Wanneer die Judeërs, wat langs hulle gewoon het, by ons kom, het hulle seker tien keer van oral oor vir ons gesê: “Julle moet na ons toe terugkom.” Ek het toe by dié dele wat laer was as die ooreenstemmende plekke agter die muur, by die dele wat blootgestel was, wagte uitgesit. Ek het die manskappe volgens familiegroepe opgestel, met hulle swaarde, steekspiese en boë. Ek het sake deurgekyk, toe opgestaan en vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die volk gesê: “Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer! Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.” Ons vyande het gehoor dat hulle plan aan ons bekend is. God het hulle plan verydel, en ons kon almal teruggaan na die muur, elkeen na sy werk. Van daardie dag af het die helfte van my jong manne met die werk aangegaan, en die ander helfte het die steekspiese, kleinskilde, boë en harnasse gereed gehou. Die bevelvoerders was opgestel agter die hele huis van Juda wat besig was om die muur te bou. Dié wat die vragte moes dra, het met een hand gedra, en met die ander hand die wapen vasgehou terwyl hulle besig was met die werk. Elke bouer het gebou met sy swaard aan sy heupe vasgegord. Die een wat die •ramshoring blaas, was langs my. Ek sê toe vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die manskappe: “Die werk is baie en verspreid, en ons is uitgesprei op die muur, elkeen ver van sy volksgenote. Op enige plek waar julle die geluid van die ramshoring hoor, daar moet julle by ons aansluit. Ons God sal vir ons veg. ” So was ons besig met die werk, terwyl die helfte van die manne steekspiese gereedhou: vandat die rooidag gebreek het, totdat die sterre verskyn. Dit was ook in hierdie tyd dat ek vir die manskappe gesê het: “Elkeen moet met sy jong manne in Jerusalem oornag, sodat hulle vir ons snags as wagte kan optree en bedags by die werk kan wees.” Nie ek of my volksgenote of my jong manne of die manne wat by my op wag was – nie een van ons het eers sy klere uitgetrek nie, elkeen steeds met sy wapen by sy regterhand. Daar het 'n groot noodkreet onder die volk opgeklink, ook onder hulle vroue, gerig teen hulle Judese volksgenote. Daar was dié wat gesê het: “Saam met ons seuns en ons dogters is ons baie; ons moet koring kry, sodat ons kan eet en aan die lewe bly.” Dan was daar dié wat gesê het: “Ons landerye, ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood.” Ander weer het gesê: “Ons het geld geleen teen ons landerye en wingerde vir die belasting aan die koning. Daarom dan, ons is dieselfde vlees en bloed as ons volksgenote, en ons kinders is soos hulle kinders; maar kyk, ons moes ons seuns en dogters aan slawerny onderwerp. Daar is van ons dogters wat verneder is, maar ons hande was afgekap. Ons landerye en wingerde behoort aan ander.” Ek was baie kwaad toe ek hulle noodkreet en hierdie woorde hoor. Ek het in my hart daaroor nagedink, en toe die hoëlui en gesagsdraers verwyt en vir hulle gesê: “Elkeen van julle leen sowaar teen woekerrente aan sy volksgenoot. ” Ek het toe 'n groot byeenkoms teen hulle saamgeroep en vir hulle gesê: “Ons het self ons volksgenote, die Judeërs, wat aan die nasies verkoop was, na ons vermoë teruggekoop, maar julle verkoop ook julle volksgenote, sodat hulle aan ons verkoop moet word.” Hulle was doodstil en kon nie 'n antwoord vind nie. Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie? Ook ek, my broers en my werkers het aan volksgenote geld en koring geleen. Laat ons maar hierdie woekerrente kwytskeld. Gee tog vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise aan hulle terug, en ook die rente op die geld, koring, •nuwe wyn en olie wat julle aan hulle geleen het.” Daarop het hulle gesê: “Ons sal dit teruggee en van hulle niks eis nie. Ons sal presies maak soos jy gesê het.” Ek het toe die priesters ontbied en daardie mense 'n eed laat aflê om ooreenkomstig hierdie onderneming op te tree. Ek het ook die vou van my kleed uitgeskud en gesê: “Net so sal God elke man uitskud wat nie hierdie woord gestand doen nie – uit sy huis en uit sy besittings. Mag hy so uitgeskud en leeg wees.” Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die Here geloof. Die volk het woord gehou. Boonop het ek en my broers, vanaf die dag dat ek aangestel is om as hulle •streekgoewerneur in die land Juda op te tree, van die twintigste regeringsjaar van Artasasta, die koning, tot die twee-en-dertigste jaar – twaalf jaar lank – nie die voedsel wat streekgoewerneurs toekom, geëet nie. Maar die eerste streekgoewerneurs wat voor my daar was, het swaar laste op die volk gelê. Hulle het brood en wyn van hulle geneem, en daarna ook nog veertig sikkel silwer. Selfs hulle werkers het oor die volk geheers. Maar ek, ek het uit ontsag vir God nie so opgetree nie. Ook met die werk aan hierdie stadsmuur het ek volhard. Grond het ek nie gekoop nie, en al my werkers was altyd daar by die werk saamgetrek. Die Judeërs en die gesagsdraers, 'n honderd-en-vyftig man, en hulle wat uit die nasies rondom ons na ons gekom het, was by my aan tafel. En dit wat vir elke dag voorberei is, een bees, ses stuks uitgesoekte kleinvee en voëls, is voorberei op my koste; en elke tiende dag was daar van alle soorte wyn in oorvloed. Ondanks dit alles het ek die voedsel wat 'n streekgoewerneur toekom, nie geëis nie, omdat die werklas op hierdie volk swaar was. Onthou, tot my voordeel, my God, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het. Toe die nuus Sanballat, Tobija, Gesem die Arabier, en die res van ons vyande bereik dat ek die muur herbou het en dat daar nie meer 'n bres daarin was nie, alhoewel ek tot op daardie stadium nog nie die deure in die poorte ingesit het nie, het Sanballat en Gesem vir my laat weet: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei. ” Hulle was egter van plan om my kwaad aan te doen. Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” Hulle het dieselfde boodskap vier keer vir my gestuur, en ek het hulle op dieselfde manier bly antwoord. Toe stuur Sanballat vir die vyfde keer op dieselfde manier sy dienaar na my met 'n oop brief in sy hand waarin geskryf staan: “Onder die nasies word daar vertel, en Gasmu bevestig dit, dat jy en die Judeërs van plan is om in opstand te kom. Dit is waarom jy die muur herbou. En volgens hierdie berigte gaan jy hulle koning word. Jy het selfs profete aangestel om in Jerusalem oor jou te verkondig, ‘Daar is 'n koning in Juda!’ Hierdie berigte gaan nou by die koning uitkom. Kom dan nou, laat ons bymekaarkom.” Ek het toe aan hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Hierdie dinge, dit wat jy beweer, gebeur nie; inteendeel – jy versin dit in jou eie hart.” Ja, hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal slap word vir die werk, sodat hulle dit nie sal doen nie. Daarom, maak my hande sterk, my Heer! Ek het self na die huis van Semaja, seun van Delaja, seun van Mehetabel, gegaan. Hy was ingeperk, maar het gesê: “Ons moet by die huis van God ontmoet, in die •tempel. Ons moet die deure van die tempel sluit, want hulle kom om jou dood te maak; in die nag kom hulle om jou dood te maak.” Ek het egter gedink: Moet iemand soos ek vlug? Wie sal, in my situasie, die tempel binnegaan sodat hy kan lewe? Ek sal nie gaan nie! Ek het besef: Kyk, dit is nie God wat hom gestuur het nie; maar die profesie het hy self oor my uitgespreek. Dit is Tobija en Sanballat wat hom gehuur het. Hy is gehuur, sodat ek uit vrees so sou optree en sonde doen. Dan sou hulle rede tot naamskending hê, sodat hulle my kon treiter. Onthou tog, my God, vir Tobija en Sanballat, oor hierdie dade van hulle, en ook Noadja, die profetes, en die res van die profete wat my wou bangmaak. Die muur is binne twee-en-vyftig dae voltooi, op die vyf-en-twintigste dag van Elul. Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bang geword, en ons vyande het in hulle oë baie laag gedaal. Hulle het besef dat hierdie werk met God se bystand gedoen is. Ook in dié tyd het die hoëlui van Juda baie briewe na Tobija gestuur, en van Tobija af het briewe na hulle gekom. Want baie mense in Juda was met 'n eed aan hom verbonde, omdat hy die skoonseun was van Seganja, seun van Arag; en sy seun Joganan was met die dogter van Mesullam, die seun van Beregja, getroud. Ook oor sy goeie dade het hulle gedurig voor my gepraat, en my woorde het hulle telkens aan hom oorgedra. Tobija het briewe gestuur om my bang te maak. Toe die stadsmuur herbou was, het ek die poortdeure ingesit, en die poortwagte, die sangers en die Leviete is aangestel. Ek het Ganani, my broer, saam met Gananja, die bevelvoerder van die vesting, oor Jerusalem aangestel. Hy was immers 'n betroubare man en het meer ontsag vir God gehad as die meeste mense. Ek het vir hulle gesê: “Die poorte van Jerusalem mag nie oopgemaak word voordat die son warm is nie. En terwyl hulle nog wag staan, moet hulle die deure sluit en grendel. Plaas die inwoners van Jerusalem uit as wagte, elkeen op sy pos, elkeen voor sy huis.” Die stad was groot en uitgestrek en die mense daarin was min. Die huise was nog nie herbou nie. God het my dit op die hart gelê, en ek het die hoëlui, die gesagsdraers en die volk byeengebring om geregistreer te word. Ek het afgekom op 'n geslagsregister van hulle wat eerste uit die ballingskap weggetrek het. Daarin staan toe geskryf: Hier volg 'n lys van die mense van die provinsie wat van die gevange ballinge af weggetrek het, dié wat •Nebukadnesar, die koning van Babilonië, weggevoer het. Hulle het na Jerusalem en Juda teruggekeer, elkeen na sy dorp, dié wat saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Asarja, Raämja, Nagamani, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Negum en Baäna gekom het. Die getal mans van die volk Israel was: Die afstammelinge van Paros – 2 172; die afstammelinge van Sefatja – 372; die afstammelinge van Arag – 652; die afstammelinge van Pagat-Moab, uit die afstammelinge van Jesua en Joab – 2 818; die afstammelinge van Elam – 1 254; die afstammelinge van Sattu – 845; die afstammelinge van Sakkai – 760; die afstammelinge van Binnuï – 648; die afstammelinge van Bebai – 628; die afstammelinge van Asgad – 2 322; die afstammelinge van Adonikam – 667; die afstammelinge van Bigwai – 2 067; die afstammelinge van Adin – 655; die afstammelinge van Ater, deur Hiskia – 98; die afstammelinge van Gasum – 328; die afstammelinge van Besai – 324; die afstammelinge van Garif – 112; die afstammelinge van Gibeon – 95. Die manne van Betlehem en Netofa – 188; die manne van Anatot – 128; die manne van Bet-Asmawet – 42; die manne van Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot – 743; die manne van Rama en Geba – 621; die manne van Migmas – 122; die manne van Bet-El en Ai – 123; die manne van die ander Nebo – 52. Die afstammelinge van die ander Elam – 1 254; die afstammelinge van Garim – 320; die afstammelinge uit Jerigo – 345; die afstammelinge uit Lod, Gadid en Ono – 721; die afstammelinge uit Senaä – 3 930. Die priesters was: Die afstammelinge van Jedaja, uit die familie van Jesua – 973; die afstammelinge van Immer – 1 052; die afstammelinge van Pasgur – 1 247; die afstammelinge van Garim – 1 017. Die Leviete was: Die afstammelinge van Jesua, uit Kadmiël, uit die afstammelinge van Hodauja – 74. Die sangers was: Die afstammelinge van Asaf – 148. Die poortwagte was: Die afstammelinge van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita, Sobai – 138. Die tempeldienaars was: Die afstammelinge van Siga, Gasufa, Tabbaot; die afstammelinge van Keros, Sia, Padon; die afstammelinge van Lebana, Gagaba, Salmai; die afstammelinge van Ganan, Giddel, Gagar; die afstammelinge van Reaja, Resin, Nekoda; die afstammelinge van Gassam, Ussa, Paseag; die afstammelinge van Besai, Meünim, Nefusim; die afstammelinge van Bakbuk, Gakufa, Gargur; die afstammelinge van Baslut, Megida, Garsa; die afstammelinge van Barkos, Sisera, Temag; en die afstammelinge van Nesiag en Gatifa. Die afstammelinge van Salomo se dienaars was: Die afstammelinge van Sotai, Soferet, Peruda, die afstammelinge van Jala, Darkon, Giddel, die afstammelinge van Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Amon. Die tempeldienaars en die afstammelinge van Salomo se dienaars was altesaam 392. Die volgende is dié wat weggetrek het uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer, maar wat nie kon aandui of hulle familie of dié se nakomelinge uit Israel was nie: Die afstammelinge van Delaja, Tobija en Nekoda – 642. En van die priesters was daar: Die afstammelinge van Gobajja, Kos en Barsillai – 'n man wat uit die dogters van Barsillai, die man uit Gilead, 'n vrou geneem het, en toe na hulle vernoem is. Hierdie mense het hulle inskrywings in die geslagsregisters probeer opspoor, maar kon dit nie vind nie. Hulle is toe as •onrein vir die priesterskap verklaar. Die administrateur het hulle laat weet dat hulle nie van die •besonder heilige gawes mag eet nie, totdat 'n priester aan diens kom wat die Urim en Tummim kon hanteer. Die lede van die gemeenskap was altesaam 42 360, afgesien van hulle slawe en hulle slavinne; dié was 7 337. Hulle het ook nog 245 sangers en sangeresse gehad, asook 435 kamele en 6 720 donkies. Sommige van die familiehoofde het bygedra vir die werk. Die administrateur het vir die fonds 1 000 goue dragme, 50 offerbakke en 530 priesterrokke gegee. Ander familiehoofde het vir die boufonds 20 000 goue dragme en 2 200 silwermina gegee. 20 000 goue dragme, 2 000 silwermina en 67 priesterrokke is wat die res van die volk gegee het. Die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, 'n deel van die volk en die tempeldienaars en al die ander Israeliete het in hulle dorpe gaan woon. Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. Die hele volk het toe soos een man byeengekom op die plein voor die Waterpoort en Esra, die skrifgeleerde, gevra om die •boekrol te bring met die Wet van Moses wat die Here Israel beveel het. Esra, die priester, het toe op die eerste dag van die sewende maand die Wet voorgehou aan die byeenkoms, wat mans en vroue ingesluit het, elkeen wat met begrip kon luister. Hy het, vandat dit lig geword het tot die middel van die dag toe, daar voor die plein by die Waterpoort daaruit voorgelees vir die mans en vroue en dié wat kon verstaan. Die hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet. Esra, die skrifgeleerde, het gestaan op 'n houtverhoog wat hulle vir dié doel gemaak het. Langs hom, aan sy regterkant, het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en aan sy linkerkant Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. Esra het die boekrol voor die oë van die hele volk oopgemaak, want hy het hoër as die hele volk gestaan. Toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan. Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele volk het, met hulle hande opgehef, geantwoord: “Amen, amen!” Toe het hulle gekniel en met hulle gesigte na die grond in aanbidding gebuig voor die Here. Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan, Pelaja en die Leviete het vir die volk die Wet verduidelik, terwyl die volk op hulle plekke bly staan het. Hulle het uit die boekrol met die Wet van God voorgelees, terwyl hulle verduidelik. Hulle het die uitleg gegee, sodat die volk die voorlesing kon verstaan. Nehemia – hy was die administrateur – en Esra, die priester en skrifgeleerde, en die Leviete wat besig was om vir die volk te verduidelik, het toe vir die hele volk gesê: “Hierdie dag is heilig vir die Here julle God. Moenie treur of huil nie!” Ja, die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die Wet hoor. Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” Die Leviete het die hele volk gemaan om stil te wees en gesê: “Wees stil, want hierdie dag is heilig! Moenie neerslagtig wees nie!” Toe gaan die hele volk uit om te eet en te drink en om uit te deel, en om met groot vreugde fees te vier, want hulle het die woorde verstaan wat aan hulle bekend gemaak is. Op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete, by Esra, die skrifgeleerde, byeengekom om insig te kry in die woorde van die Wet. Hulle ontdek toe, opgeteken in die Wet wat die Here by monde van Moses beveel het, dat die Israeliete in hutte moet woon tydens die fees in die sewende maand. Hulle moes dit bekend maak. Hulle moes 'n boodskap deur al hulle dorpe en Jerusalem stuur: “Gaan uit na die berge, en bring takke van olyfbome, wilde-olyfhoutbome, mirtebome, dadelpalms en die takke van welig groeiende bome, om hutte te maak, soos daar geskryf staan.” Die volk het toe uitgegaan, dit ingebring en vir hulleself hutte gemaak, elkeen op sy dak, in hulle binnehowe of in die voorhowe van die huis van God, en ook op die plein by die Waterpoort en die plein by die Efraimspoort. Die hele geloofsgemeenskap, dié wat teruggekeer het uit die ballingskap, het hutte gemaak en in die hutte gewoon. Ja, sedert die dae van Josua, seun van Nun, tot op daardie dag het die Israeliete dit nog nooit so gedoen nie. Daar was baie groot vreugde. Esra het dag vir dag, van die eerste tot die laaste dag toe, voorgelees uit die boekrol met die Wet van God. Hulle het sewe dae lank fees gevier, en op die agtste dag was daar volgens voorskrif 'n gewyde rusdag. Op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die Israeliete byeengekom, terwyl hulle vas in rouklere, en met grond op hulle koppe. Die nageslag van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders. Hulle het gestaan en belydenis gedoen van hulle sondes en die sondeskuld van hulle voorouers. Hulle het op hulle plekke bly staan en het vir 'n kwart van die dag uit die •boekrol met die Wet van die Here hulle God gelees, en vir 'n kwart van die dag het hulle belydenis gedoen, en telkens voor die Here hulle God in aanbidding gebuig. Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en met harde stemme na die Here hulle God om hulp geroep. Die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê: “Staan op! Prys die Here julle God van ewigheid af en vir ewig! Laat hulle u heerlike Naam prys wat bo elke seënspreuk en loflied verhewe is. U alleen is die Here; dit is U wat die hemelruim, die hoogste hemele, gemaak het en al sy hemelliggame, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. U hou dit alles aan die lewe; en die hemelliggame – voor U buig hulle in aanbidding. “U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gelei het, vir hom die naam Abraham gegee het. U het sy hart getrou teenoor U bevind en met hom die verbond gesluit om aan hom te gee die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete en Feresiete, die Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee. U het u woord gestand gedoen, want U is regverdig. “ U het die ellende van ons voorouers in Egipte raakgesien, hulle noodkreet by die Rietsee het U gehoor. U het tekens en wonders gedoen by die farao, by al sy dienaars en die hele volk van sy land, want U het geweet dat hulle vermetel optree teen u volk; U het vir U 'n naam gemaak, soos dit vandag nog is. “ Die see het U voor hulle oopgekloof, hulle het dwarsdeur die see getrek op droë grond. Hulle agtervolgers het U in die dieptes gewerp, soos 'n klip in die magtige waters. Met 'n wolkkolom het U hulle bedags gelei, met 'n vuurkolom snags, om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan. “ Op die berg Sinai het U neergedaal, met hulle uit die hemel gepraat. U het vir hulle gepaste beslissings gegee – betroubare wette, goeie voorskrifte en gebooie. U heilige Sabbat het U aan hulle bekend gestel; gebooie, vaste voorskrifte en 'n wet het U hulle opgelê by monde van Moses, u dienskneg. “Brood uit die hemel het U aan hulle gegee vir hulle honger; water uit 'n rots het U vir hulle laat ontspring vir hulle dors. U het vir hulle gesê om in te gaan, die land in besit te neem, die land waaroor U u hand opgehef het om dit aan hulle te gee. Maar hulle, ons voorouers, was vermetel; hulle het hulle nekke styf gemaak; hulle was nie gehoorsaam aan u gebooie nie. Hulle het geweier om te luister; hulle het nie u wonderdade onthou wat U aan hulle gedoen het nie. Hulle het hulle nekke styf gemaak en was vasbeslote om terug te keer na hulle slawerny in Egipte. Maar U is 'n God wat vergewe, U is genadig en barmhartig, geduldig, vol troue liefde; U het hulle nie verlaat nie. Selfs toe hulle 'n gegote kalf gemaak en gesê het, ‘Dit is jou God wat jou uit Egipte laat optrek het,’ en hulle hulle skuldig gemaak het aan ernstige godslastering, het U, in u groot ontferming, hulle nie in die woestyn agtergelaat nie. Die wolkkolom, om hulle op die pad te lei, het bedags nie van hulle gewyk nie, en die vuurkolom, om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan, ook nie snags nie. U goeie Gees het U gegee om aan hulle insig te gee; u manna het U nie van hulle monde weerhou nie; en water het U vir hulle gegee om hulle dors te les. Veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het geen gebrek gely nie; hulle klere het nie verslyt nie, en hulle voete het nie geswel nie. “ U het koninkryke en volke aan hulle oorgelewer, die grondgebied stuk vir stuk onder hulle verdeel. Hulle het die land van Sihon in besit geneem, ook die land van die koning van Gesbon en die land van Og, koning van Basan. Hulle kinders het U so talryk gemaak soos die sterre aan die hemelruim. U het hulle gebring na die land wat U aan hulle voorouers beloof het om daar in te gaan, om dit in besit te neem. Die kinders het die land binnegegaan, dit in besit geneem. U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle die knie laat buig. U het hulle in hulle hand gegee, sowel hulle konings as die volke van die land, om met hulle te doen net wat hulle wou. Hulle het versterkte stede en vrugbare grond verower. Hulle het huise, vol van alles wat goed is, in besit geneem, ook uitgekapte opgaarputte, wingerde, olyfboorde en talryke vrugtebome. Hulle het geëet, versadig en vet geword; hulle kon hulle verlustig in u groot goedheid. “Maar hulle was opstandig, het teen U in opstand gekom. Hulle het die rug op u wet gedraai. U profete, wat hulle tereggewys het om hulle na U terug te bring, het hulle vermoor. Hulle het hulle skuldig gemaak aan ernstige godslastering. U het hulle oorgegee in die hand van hulle teenstanders, en dié het hulle in die noute gebring. In hulle tyd van nood het hulle na U om hulp geroep, U self het uit die hemel gehoor. In u groot ontferming het U aan hulle verlossers gegee, en dié het hulle verlos uit die hand van hulle teenstanders. Maar net toe daar vir hulle rus gekom het, het hulle weer gedoen wat sleg is in u oë. U het hulle in die hand van hulle vyande gelaat, en dié het oor hulle geheers. Hulle het weer na U om hulp geroep, U self het uit die hemel gehoor en hulle in u groot ontferming vele kere uitgered. U het hulle gewaarsku, om hulle na u wet terug te bring. Maar hulle was vermetel, hulle het nie na u gebooie geluister nie, en teen u bepalings het hulle gesondig, teen dit wat 'n mens moet doen, sodat hy daardeur kan leef. Hulle skouers het onversetlik gebly, hulle nekke styf, hulle het nie geluister nie. “ Baie jare lank was U geduldig met hulle, het U hulle gewaarsku deur u Gees by monde van u profete, maar hulle het nie gehoor gegee nie. U het hulle oorgegee in die hand van die volke van ander lande. In u groot ontferming het U hulle egter nie heeltemal vernietig nie; U het hulle nie in die steek gelaat nie. Ja, U is 'n genadige en barmhartige God. “ Daarom, ons God, groot, magtige en ontsagwekkende God, U wat bly by die verbond en u troue liefde, laat dit tog nie gering wees voor U nie, al die swaarkry wat ons ervaar het – ons konings en leiers, ons priesters en profete, ons voorouers en u hele volk – vanaf die dae van die konings van Assirië tot vandag toe. U was regverdig in alles wat oor ons gekom het, ja, U het in trou opgetree – ons was skuldig. Ons konings en leiers, ons priesters en voorouers het u wet nie uitgevoer nie. Hulle het nie ag geslaan op u gebooie en bepalings waarmee U hulle gewaarsku het nie. Hulle het, met hulle eie koninkryk, te midde van u groot goedheid wat U aan hulle geskenk het, en in die wye en vrugbare land wat U vir hulle aangebied het, U nie gedien nie; hulle het nie weggedraai van hulle bose dade nie. “ Kyk, ons is vandag slawe; die grond wat U aan ons voorouers gegee het om die vrugte en die goeie daarvan te geniet – kyk, ons is slawe daarop. Die opbrengs daarvan word meer vir die konings wat U oor ons gestel het – en dit as gevolg van ons sondes. Oor ons liggame heers hulle, ook oor ons vee, soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood.” “Op grond van dit alles gaan ons nou 'n bindende ooreenkoms sluit en dit op skrif stel, en daarop die seël plaas met die name van ons leiers, ons Leviete en ons priesters.” Op die verseëlde geskrif was die volgende name: Nehemia, die administrateur, seun van Gagalja, en Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Mallug, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Barug, Mesullam, Abia, Mijamin; Maäsja, Bilgai en Semaja. Dit was die priesters. Die Leviete was: Jesua, seun van Asanja, Binnuï uit die nageslag van Genadad, Kadmiël. Hulle stamgenote was: Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani, Beninu. Die hoofde van die volk was: Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Halloges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Mallug, Garim, Baäna. Die res van die volk, die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, die tempeldienaars, en almal wat hulle van die volke van ander lande afgesonder het in navolging van die wet van God, met hulle vroue, seuns en dogters – elkeen wat kon verstaan – het aangesluit by hulle eie volksgenote, die vernames onder hulle, en hulleself met 'n vervloeking en eedswering daaraan verbind: “om die wet van God te volg wat by monde van Moses, die dienskneg van God, gegee is, om dit na te kom en om al die gebooie van die Here, ons Heer, sy beslissings en vaste voorskrifte, uit te voer, en dat ons nie ons dogters aan die volke van die land sal gee nie, en hulle dogters nie vir ons seuns sal neem nie. En die volke van die land wat hulle handelsware of enige graan op die Sabbatdag bring om te verkoop – ons sal dit nie van hulle aanvaar op die Sabbat of op 'n heilige dag nie. En ons sal die sewende jaar die grond onbewerk laat lê en van alle skuldinvordering afsien. Ons lê onsself die verpligting op om jaarliks 'n derde van 'n sikkel af te staan vir die diens in die huis van ons God: vir die brood, gerangskik in rye, vir die gereelde •graanoffer en •brandoffer op die Sabbatte, op die nuwemaansfeeste en op die vaste feestye, vir die •heilige gawes en die •reinigingsoffers om versoening te doen vir Israel, en vir al die take in die huis van ons God. Ons, die priesters, die Leviete en die volk het die lot gewerp oor die lewering van hout, om dit volgens families, na die huis van ons God te bring, jaar ná jaar, op vasgestelde tye, sodat dit op die altaar van die Here, ons God, kan brand, soos geskryf staan in die Wet. Ons onderneem om, jaar ná jaar, die eerste vrugte van ons grond en die eerste vrugte van elke boom, te bring na die huis van die Here; en, soos geskryf staan in die Wet, om die eersgeborenes van ons seuns en ons vee, die eersgeborenes van ons beeste en ons kleinvee, te bring na die huis van ons God, vir die priesters wat diens doen in die huis van ons God; en ons eerste baksel, ons •wydingsgeskenke en die vrug van elke boom wat •nuwe wyn en olie lewer, sal ons na die vertrekke, by die huis van ons God bring vir die priesters. En die tiendes van ons grond is vir die Leviete. Dit is hulle, die Leviete, wat die tiendes sal insamel in al die dorpe waar ons werk. 'n Priester, die nakomeling van Aäron, sal by die Leviete teenwoordig wees wanneer hulle die tiendes insamel. En die Leviete moet 'n tiende van die tiendes opneem na die huis van ons God, na die vertrekke van die stoorplek. Ja, na daardie vertrekke sal die Israeliete en die nageslag van Levi die wydingsgeskenke van koring, nuwe wyn en olie neem. Die gereedskap van die heiligdom is daar, en ook die priesters wat diens doen, die poortwagte en die sangers. Ons sal nie die huis van ons God verwaarloos nie.” Die leiers van die volk het hulle in Jerusalem gevestig, en die res van die volk het die lot gewerp om een uit tien gesinne te bring, sodat dié in Jerusalem, die heilige stad, kon woon, en die nege ander in die dorpe. Die volk het al die mense wat gewillig was om in Jerusalem te woon, seën toegewens. Hier volg die hoofde van die provinsie wat in Jerusalem gewoon het. In die dorpe van Juda het Israel, die priesters, die Leviete, die tempeldienaars en die nageslag van Salomo se dienaars, in hulle eie dorpe gewoon, elkeen op sy eiendom, en in Jerusalem het sommige uit die nageslag van Juda en Benjamin gewoon. Uit die nageslag van Juda was dit: Ataja, seun van Ussia, seun van Sagaria, seun van Amarja, seun van Sefatja, seun van Mahalalel, uit die nageslag van Peres; Maäseja, seun van Barug, seun van Kol-Gose, seun van Gasaja, seun van Adaja, seun van Jojarib, seun van Sagaria, seun van Siloni. Al die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was 468 bekwame manne. Dit was die nageslag van Benjamin: Sallu, seun van Mesullam, seun van Joëd, seun van Pedaja, seun van Kolaja, seun van Maäseja, seun van Itiël, seun van Jesaja, en sy stamgenote Gabbai en Sallai. Dit was 928 mense. Joël, seun van Sigri, was hoofleier oor hulle, en Juda, seun van Senua, was tweede in bevel oor die stad. Van die priesters was daar: Jedaja, seun van Jojarib; Jagin; Seraja, seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, die leier oor die huis van God, en hulle stamgenote wat die werk gedoen het by die •tempel – 822; Adaja, seun van Jerogam, seun van Pelalja, seun van Amsi, seun van Sagaria, seun van Pasgur, seun van Malkija, en sy stamgenote, die familiehoofde – 242; Amassai, seun van Asarel, seun van Agsai, seun van Mesillemot, seun van Immer, en hulle stamgenote, dapper krygers – 128. Sabdiël, seun van Haggedolim, was 'n hoofleier oor hulle. Van die Leviete was daar: Semaja, seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja, seun van Bunni; Sabbetai en Josabad, van die hoofde van die Leviete, wat toesig gehou het oor die werk buite die huis van God; Mattanja, seun van Miga, seun van Sabdi, seun van Asaf, die voorsanger wat die lofsang by die gebed moes aanhef; Bakbukja, die tweede in bevel onder sy ampsgenote; Abda, seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedoetoen. Die Leviete in die heilige stad was altesaam 284. Die poortwagte was: Akkub en Talmon en hulle ampsgenote wat in die poorte wag gehou het – 172. Dan was daar die res van Israel, die priesters, die Leviete, in al die dorpe van Juda, elkeen op sy erfdeel. Die tempeldienaars het gewoon op die Ofel. Siga en Gispa was in bevel van die tempeldienaars. Die hoofleier van die Leviete in Jerusalem was Ussi, seun van Bani, seun van Gasabja, seun van Mattanja, seun van Miga, uit die nageslag van Asaf, wat tydens die dienswerk in die huis van God moes sing. Daar was immers 'n koninklike bevel in verband met hulle, 'n vaste reëling oor die sangers se daaglikse optrede. Petagja, seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag, die seun van Juda, het die koning bygestaan in enigiets wat op die volk betrekking gehad het. Wat die gehuggies met hulle landerye betref: Van die nageslag van Juda het in Kirjat-Arba en sy omliggende dorpies, in Dibon en sy omliggende dorpies en in Kabseël en sy gehuggies gewoon; ook in Jesua, Molada en Bet-Pelet, in Gasar-Sual en Berseba met sy omliggende dorpies, in Siklag en Megona met sy omliggende dorpies, in En-Rimmon, Sora en Jarmut, in Sanoag, Adullam en hulle gehuggies, in Lagis met sy landerye en in Aseka en sy omliggende dorpies. Hulle het hulle in die gebied vanaf Berseba tot by die Hinnomdal gevestig. Die nageslag van Benjamin het hulle gevestig vanaf Geba, in Migmas, Aja en Bet-El met sy omliggende dorpies, in Anatot, Nob, Ananeja, Gasor, Rama, Gittajim, Gadid, Seboïm, Neballat, Lod en Ono by Ghe-Hagarasjim. Van die afdelings van die Leviete uit Juda het in Benjamin gewoon. Die volgende is die priesters en Leviete wat saam met Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua weggetrek het uit die ballingskap: Seraja, Jeremia, Esra, Amarja, Mallug, Gattus, Seganja, Regum, Merajot, Iddo, Ginneton, Abia, Mijamin, Maädja, Bilga, Semaja en Jojarib, Jedaja, Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja. Hierdie manne was die hoofde van die priesters en hulle stamgenote in die tyd van Jesua. Die Leviete was: Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja wat moes leiding neem met die dankliedere, hy en sy ampsgenote, terwyl Bakbukja en Unni, hulle ampsgenote, volgens diensafdelings teenoor hulle plekke ingeneem het. Jesua het Jojakim verwek, Jojakim het Eljasib verwek, en Eljasib vir Jojada. Jojada het Jonatan verwek, en Jonatan het Jaddua verwek. In die tyd van Jojakim was die volgende priesters familiehoofde: van Seraja se familie was dit Meraja; van Jeremia, Gananja; van Esra, Mesullam; van Amarja, Joganan; van Mallug, Jonatan; van Sebanja, Josef; van Garim, Adna; van Merajot, Gelkai; van Iddo, Sagaria; van Ginneton, Mesullam; van Abia, Sigri; van Minjamin en Moadja, Piltai; van Bilga, Sammua; van Semaja, Jonatan; van Jojarib, Mattenai; van Jedaja, Ussi; van Sallu, Kallai; van Amok, Eber; van Gilkija, Gasabja; van Jedaja, Netanel. Wat die Leviete betref: In die tyd van Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua is die familiehoofde opgeskryf, ook dié van die priesters, tot met die regering van Darius die Pers. Die nageslag van Levi, die familiehoofde, is opgeskryf in die boekrol met die kronieke, tot in die tyd van Joganan, seun van Eljasib. Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua, seun van Kadmiël, met hulle ampsgenote wat, afdeling vir afdeling, teenoor hulle plek ingeneem het om te loof en te dank ooreenkomstig die opdrag van Dawid, die man van God. Mattanja, Bakbukja, Obadja, Mesullam, Talmon en Akkub het in afdelings as poortwagte wag gehou by die voorraadkamers van die poorte. Hierdie manne het geleef in die tyd van Jojakim, seun van Jesua, seun van Josadak; en ook van Nehemia, die •streekgoewerneur, en Esra, die priester en skrifgeleerde. Met die inwyding van die stadsmuur van Jerusalem is die Leviete in al hulle woonplekke opgespoor, met die doel om hulle na Jerusalem te bring vir die vreugdevolle viering van die inwyding met dankliedere en sang, met simbale, harpe en liere. Die sanggroepe is byeengeroep uit die omstreke van Jerusalem en uit die gehuggies van die mense van Netofa, uit Bet-Haggilgal en die gebied van Geba en Asmawet; want die sangers het vir hulleself gehuggies gebou om Jerusalem. Toe die priesters en Leviete hulleself gereinig het, het hulle ook die volk, die stadspoorte en die muur gereinig. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim, en twee groot kore vir dankliedere opgestel. Die een koor het op die muur in 'n suidelike rigting na die Ashooppoort beweeg. Hulle is gevolg deur Hosaja en die helfte van die leiers van Juda, ook Asarja, Esra, Mesullam, Juda, Benjamin, Semaja, Jeremia, en van die priestergroepe met trompette: Sagaria, seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf; en sy ampsgenote Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani, met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, met Esra, die skrifgeleerde, op die voorpunt. Hulle is reguit oor die Fonteinpoort en op met die trappe by die Stad van Dawid, met die steil deel van die muur langs, bo die huis van Dawid verby, tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die tweede koor het in die teenoorgestelde rigting beweeg. Ek en die helfte van die volk het hulle op die muur gevolg, bo verby die Toring van die Oonde tot by die Breë Muur, oor die Efraimspoort, die Jesanapoort, die Vispoort en verby die Toring van Gananel en die Toring van die Honderd, tot by die Skaappoort. By die Poort van die Paleiswag het hulle tot stilstand gekom. Daarna het die twee kore vir dankliedere hulle plekke in die huis van God ingeneem, ook ek en die helfte van die gesagsdraers saam met my, en die priesters Eljakim, Maäseja, Minjamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja, met trompette, asook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die sangers het toe begin sing. Jisragja was die koorleier. Op daardie dag het hulle vol vreugde 'n groot hoeveelheid offers geslag, want God het vir hulle 'n rede tot groot vreugde gegee. Ook die vroue en kinders was verheug, en die vreugde in Jerusalem kon van ver af gehoor word. Op dieselfde dag is manne as opsigters aangestel by die vertrekke wat as stoorkamers vir die •wydingsgeskenke, die eerste opbrengs en die tiendes moes dien, om daarin die rantsoen wat die priesters en die Leviete volgens wet moes kry uit die landerye rondom die dorpe, byeen te bring. Juda was immers verheug oor die priesters en oor die Leviete wat diens gedoen het. Hulle het die verpligtinge teenoor hulle God en die reinheidsvoorskrifte nagekom, ook die sangers en poortwagte, in ooreenstemming met die opdragte van Dawid en sy seun Salomo. Ja, van die vroegste tye af, reeds in die dae van Dawid en Asaf, was daar sangleiers en was daar lofliedere en danksegging ter ere van God. Die hele Israel het in die tyd van Serubbabel en in die tyd van Nehemia telkens die rantsoene aan die sangers en poortwagte verskaf, volgens die behoeftes van elke dag. Hulle het ook •heilige gawes vir die Leviete gegee, en die Leviete het dit vir die seuns van Aäron gegee. In daardie tyd is daar ten aanhore van die volk voorgelees uit die •boekrol van Moses. Daar is toe ontdek dat daarin geskryf staan dat 'n Ammoniet of 'n Moabiet tot in ewigheid nie in die byeenkoms van God mag kom nie, omdat hulle die Israeliete nie met brood en water tegemoetgegaan het nie, en Bileam teen Israel gehuur het om hulle te vervloek, maar dat ons God die vervloeking in 'n seën verander het. Toe hulle die wet hoor, het hulle alle mense van ander afkoms uit Israel uitgesluit. Voor hierdie gebeure het Eljasib, die priester, wat oor die vertrekke van die huis van ons God aangestel is, 'n nabye familielid van Tobija, vir Tobija 'n groot vertrek ingerig waar die •graanoffers, die wierook en die tempeltoerusting voorheen opgeberg was, ook die tiendes van koring, •nuwe wyn en olie wat regtens die Leviete, die sangers en die poortwagte toegekom het, asook die •wydingsgeskenke vir die priesters. Terwyl dit alles gebeur het, was ek nie in Jerusalem nie, want in die twee-en-dertigste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babilonië, het ek na die koning gegaan. Ná verloop van tyd het ek by die koning verlof gevra en na Jerusalem gegaan. Toe ek agterkom watter kwaad Eljasib ten gunste van Tobija aangerig het deur vir hom 'n vertrek in te rig in die voorhowe van die huis van God, het dit my erg ontstel. Ek het al die huisraad van Tobija wat in die vertrek was, buite uitgegooi en opdrag gegee dat die vertrekke gereinig moet word. Toe het ek die toerusting van die huis van God en die graanoffers en wierook weer daar teruggeplaas. Ek het ook verneem dat die rantsoene van die Leviete nie gegee is nie, en dat hulle, die Leviete en die sangers wat moes diens doen, padgegee het, elkeen na sy grond. Ek het die gesagsdraers verwyt en gevra: “Waarom word die huis van God verwaarloos?” Toe het ek die Leviete byeengebring en hulle op hulle plekke laat aantree. Die hele Juda het die tiendes van koring, nuwe wyn en olie na die stoorkamers gebring. Ek het Selemja, die priester, Sadok, die skrifgeleerde, en Pedaja, een van die Leviete, oor die stoorkamers aangestel, en Ganan, seun van Sakkur, seun van Mattanja, as hulle regterhand, omdat hulle betroubaar geag is. Dit was hulle taak om die rantsoene aan hulle ampsgenote uit te deel. Dink hieroor aan my, my God, en moet tog nie my troue liefdesdiens uitwis wat ek in die huis van my God, en vir die diensbeurte daarvan, gedoen het nie. In daardie tyd het ek in Juda mense gesien wat op die Sabbat druiwe uittrap in parskuipe, en graangerwe inbring wat hulle op donkies gelaai het, ook wyn, druiwe, vye en allerhande ander vragte, en dit dan in Jerusalem inbring op die Sabbatdag. Ek het hulle dadelik tereggewys oor hulle verkoop van lewensmiddele. Die mense van Tirus wat in die stad woon, het vis en allerhande koopware ingebring en dit op die Sabbat verkoop aan die Judeërs – en dit in Jerusalem! Ek het die hoëlui van Juda verwyt, en vir hulle gevra: “Wat is hierdie bose ding wat julle aanvang? Julle ontheilig die Sabbatdag! Het julle voorouers nie net so gemaak nie? Ons God het al hierdie onheil toe oor ons en oor hierdie stad gebring. Julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig.” Net toe dit voor die Sabbat donker geword het by die poorte van Jerusalem, het ek opdrag gegee, en die poortdeure is gesluit. Ek het ook opdrag gegee dat dit nie oopgemaak moes word tot ná die Sabbat nie, en van my werkers het ek by die poorte aangestel, sodat geen vrag op die Sabbatdag sou inkom nie. Toe het die handelaars en verkopers van allerhande koopware 'n paar keer buite Jerusalem oornag. Ek het hulle tereggewys en vir hulle gevra: “Waarom oornag julle langs die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle laat verwyder. ” Van toe af het hulle nie meer op die Sabbat gekom nie. Ek het toe vir die Leviete gesê dat hulle hulleself telkens moet reinig en die poorte moet kom bewaak, om sodoende die Sabbatdag heilig te hou. Ook hieroor, my God, moet U tog aan my dink en besorg oor my wees, ooreenkomstig u oorvloedige troue liefde. Ook in daardie tyd het ek Judeërs gesien wat getroud was met vroue uit Asdod, Ammon en Moab. Die helfte van hulle kinders het Asdods gepraat. Hulle was nie in staat om Judees te praat nie, maar slegs die taal van een of ander volk. Ek het hulle verwyt, hulle vervloek, sommige van die mans geslaan en hulle hare uitgepluk. Ek het hulle by God besweer: “Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie, en julle mag nie van hulle dogters as vroue neem vir julle seuns of vir julleself nie. Is dit nie op dieselfde wyse wat Salomo, die koning van Israel, gesondig het nie? Onder die talle nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Hy was die geliefde van sy God, en God het hom oor die hele Israel koning gemaak. Maar selfs vir hom het die vreemde vroue tot sonde verlei. Moet ons nou ook van julle hoor dat julle al hierdie verskriklike kwaad doen, ontrou is aan ons God deur getroud te wees met vreemde vroue?” Een van die seuns van Jojada, seun van Eljasib, die hoëpriester, was 'n skoonseun van Sanballat uit Goron. Ek het hom van my af weggejaag. Onthou hulle, my God, oor die besoedeling van die priesterskap en van die verbond van die priesterskap en die Leviete. Ek het die priesters en Leviete gereinig van alles wat vreemd is. Ek het diensbeurte opgestel vir die priesters en die Leviete, vir elkeen met die oog op sy dienswerk, en vir die lewering van hout op vasgestelde tye, en vir die lewering van die eerste vrugte. Dink aan my, my God, tot my voordeel. Dit het gebeur gedurende die tyd van Ahasveros, dieselfde Ahasveros wat regeer het vanaf Indië tot by Kus oor honderd sewe-en-twintig provinsies. In daardie tyd, terwyl koning Ahasveros op sy koninklike troon was in die vestingstad Susan – dit was die derde jaar van sy regering – het hy 'n feesmaal aangebied vir al sy •hoë amptenare en dienaars. Die militêre leiers van die Perse en die Meders, die koninklikes en die hoë amptenare van die provinsie het voor hom verskyn. Hy het toe die prag en praal van sy koninkryk se rykdom, sowel as die kosbare skatte wat van sy belangrikheid getuig, dae lank, 180 dae lank, vertoon. En ná hierdie geleentheid het die koning nog 'n feesmaal aangebied in die binnehof van sy paleistuin vir al die mense wat hulle in die vestingstad Susan bevind het, van die belangrikste persoon tot die geringste, sewe dae lank. Duursame behangsels van linne, geweefde materiaal en pers wol is met koorde van fyn wit linne en purperrooi wolstof en silwerringe aan albasterpilare vasgemaak. Banke van goud en silwer is reggesit op 'n mosaïekplaveisel van kosbare gesteentes: albaster, perlemoen en nog ander. Wyn is geskink in goue bekers wat almal verskillend was. Koninklike wyn is in oorvloed geskink, soos daar van 'n koning verwag word. Volgens die koning se bevel kon elkeen drink net soveel soos hy wou, want dit is wat die koning die hofmeesters van sy paleis beveel het, naamlik om elkeen se wens te vervul. Ook koningin Vasti het in die paleis van koning Ahasveros vir die vroue 'n feesmaal aangebied. Op die sewende dag, toe die koning vrolik was van die wyn, het hy vir Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas – sewe van die eunugs wat koning Ahasveros persoonlik bedien het – gesê om koningin Vasti te gaan haal. Sy moes met haar hooftooisel voor die koning haar skoonheid aan die gewone mense en die hoë amptenare vertoon, want sy was beeldskoon. Maar koningin Vasti het geweier om te gaan soos die koning haar deur die eunugs beveel het. Die koning het hom bloedig vererg; hy was briesend kwaad. Die koning het toe die wyse manne geraadpleeg, kenners van die tradisies, want dit was die koning se gebruik om sake aan kenners van die wet en regspraak voor te lê. Onder hulle was die koning se belangrikste raadgewers, Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memugan, sewe hoë amptenare van die Perse en Meders wat spesiale toegang tot die koning gehad het en die voorste inwoners van die koninkryk was. Hy het hulle gevra: “Volgens wet, wat moet met koningin Vasti gedoen word?” Sy het immers nie koning Ahasveros se bevel, soos deur die eunugs oorgedra, uitgevoer nie. Memugan het in die teenwoordigheid van die koning en die raadgewers gesê: “Dit is nie net teenoor die koning wat koningin Vasti verkeerd opgetree het nie, maar ook teenoor al die hoë amptenare en al die mense in al koning Ahasveros se provinsies; want die nuus oor die koningin se gedrag sal onder al die vroue versprei, en dit sal daartoe lei dat hulle op hulle mans neersien. Hulle sal sê, ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gegaan nie.’ Vandag nog sal al die vooraanstaande vroue van die Perse en die Meders wat gehoor het van die koningin se optrede, dit aan al die hoë amptenare van die koning voorhou, en dit sal tot eindelose minagting en grimmigheid aanleiding gee. As die koning dit goedvind, laat hy 'n koninklike bevel uitvaardig wat geskryf word in die wette van die Perse en die Meders, sodat dit nie herroep kan word nie, dat Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag verskyn nie, en dat die koning haar status as koningin oorgee aan iemand beter as sy. As die bevel gehoor word wat die koning in sy hele koninkryk – groot soos dit is – uitgevaardig het, sal alle vroue hulle mans, van die belangrikste tot die geringste, met eerbied behandel.” Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goed gevind, en die koning het gedoen wat Memugan voorgestel het. Hy het briewe uitgestuur na al die provinsies van die koning, na elke provinsie, in die inwoners se eie skrif, aan elke volk in sy eie taal. Elke man moes oor sy huis heers en sy moedertaal praat. Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is. Die jong manne wat die koning bedien, het gesê: “Laat hulle vir die koning mooi jong meisies soek wat maagde is, en beeldskoon. Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur. Laat die jongmeisie wat die koning geval, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het die voorstel goedgevind en hy het so gemaak. Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif. Ester het nie haar volksverband of haar afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te doen nie. Elke dag het Mordegai buite die voorhof van die harem rondgestap om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. Voordat 'n jong meisie se beurt aangebreek het om na koning Ahasveros te gaan, moes sy volgens die gebruik van die harem vir twaalf maande 'n skoonheidskuur ondergaan: ses maande lank word hulle met mirre-olie gesalf, en daarna vir ses maande met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf, en dan gaan sy in na die koning. Wat sy ook al vra, sal vir haar uit die harem gegee word om saam te neem na die koninklike paleis. Sy het in die aand gegaan en in die oggend teruggekeer na die tweede harem wat onder toesig was van Saäsgas, die eunug van die koning en die oppasser van die vroue. Sy kon nie weer na die koning gaan nie, behalwe as hy van haar gehou het en as sy op die naam geroep is. Toe die voorbereidingstyd voltooi is van Ester, die dogter van Abigajil, Mordegai se vader se broer, wat haar as sy dogter aangeneem het, om na die koning in te gaan, het sy niks van die hand gewys van die dinge wat die eunug, Hegai, die oppasser van die vroue, vir haar aanbeveel het nie. Ester het die bewondering geniet van almal wat haar gesien het. Ester is geneem na Artaxerxes, die koning, in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering. Die koning het Ester liefgehad, meer as al die vroue. Sy het voor hom guns en welwillendheid geniet, meer as al die maagde. Hy het toe die hooftooisel op haar kop gesit, en haar koningin gemaak in Vasti se plek. Die koning het 'n groot feesmaal gehou vir al sy •hoë amptenare en dienaars – 'n feesmaal ter ere van Ester. Hy het geskenke uitgedeel soos daar van 'n koning verwag word. Toe daar vir 'n tweede keer maagde bymekaargebring is, het Mordegai in die poort van die koning se paleis gesit. Ester het nie haar afkoms en haar volksverband bekend gemaak nie, soos Mordegai haar beveel het. Sy het Mordegai se bevel gehoorsaam soos toe sy nog in sy sorg was. In daardie tyd, terwyl Mordegai in die paleispoort gesit het, het Bigtan en Teres, twee van die koning se paleisamptenare, die deurwagters, hulle bloedig vererg en was toe daarop uit om koning Ahasveros te vermoor. Toe Mordegai daarvan te hore kom, het hy dit aan koningin Ester gerapporteer, en Ester het namens Mordegai die koning ingelig. Toe die saak ondersoek en as waar bevind is, is die twee paleisamptenare aan 'n houtpaal gehang. Dit alles is in die boekrol met die kronieke opgeskryf in die teenwoordigheid van die koning. Ná hierdie dinge het koning Ahasveros Haman, seun van Hammedata die Agagiet, vereer, hom bevorder en aan hom 'n hoër posisie gegee as dié van al die ander •hoë amptenare wat by hom was. Al die dienaars in die koningspoort het gekniel en diep neergebuig voor Haman, want dit is wat die koning beveel het. Mordegai het egter nie gekniel en diep neergebuig nie. Die dienaars van die koning in die koningspoort het vir Mordegai gevra: “Hoekom verontagsaam jy die bevel van die koning?” Toe hulle dit dag ná dag vir hom gevra het, en hy hom steeds nie aan hulle gesteur het nie, het hulle dit vir Haman vertel. Hulle wou sien of Mordegai sou volhard met sy optrede, aangesien hy aan hulle verduidelik het dat hy 'n Jood is. Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom kniel en diep neerbuig nie, het hy woedend geraak. Dit was nie vir hom voldoende om net vir Mordegai dood te maak nie; hy het immers te wete gekom aan watter volk Mordegai behoort. Haman het 'n geleentheid gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te wis. In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is die lot, bekend as die Pur, in die teenwoordigheid van Haman gewerp om 'n dag en 'n maand te kies. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar. Haman het vir koning Ahasveros gesê: “Daar is 'n sekere volk wat versprei, maar tog afgesonder, onder die volke in al die provinsies van u koninkryk woon. Hulle gebruike verskil van enige ander volk en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie gepas vir die koning om hulle te laat begaan nie. As dit die koning se goedkeuring wegdra, vaardig 'n dekreet uit dat hulle uitgewis moet word. Ek sal dan tienduisend kikkar silwer oordra aan die amptenare wat die koning se sake hanteer om dit in die koning se skatkis te stort.” Die koning het sy seëlring van sy hand afgehaal en dit vir Haman, die seun van Hammedata, die Agagiet, teenstander van die Jode, gegee. Die koning het vir Haman gesê: “Die silwer word aan jou gegee, en maak met die volk soos dit goed is in jou oë.” Die skrywers van die koning is ontbied op die dertiende van die eerste maand. Daar is 'n dekreet uitgevaardig in die skrif van elke provinsie en die taal van elke volk, in ooreenstemming met alles wat Haman die satrape van die koning, die •streekgoewerneurs oor elke provinsie en die hoë amptenare van elke volk beveel het. In die naam van koning Ahasveros is dit geskryf en verseël met die seëlring van die koning. Hierdie briewe is met hardlopers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag om die Judeërs uit te wis en dood te maak, om almal te verdelg, oud en jonk, vrou en kind, op dieselfde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, en om hulle besittings buit te maak. 'n Afskrif van die dekreet moes in elke provinsie uitgevaardig word as wet. Die inhoud daarvan moes aan al die mense bekend gemaak word sodat hulle gereed kon wees vir daardie dag. Die boodskappers het op bevel van die koning haastig vertrek. Die wet is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het gaan sit om te drink, maar die stad Susan was in beroering. Toe Mordegai uitvind wat alles gebeur het, het hy 'n roukleed aangetrek, met as op sy kop. Hy het uitgegaan, die stad in, en hard en bitterlik geweeklaag. Hy het tot net voor die koningspoort gekom, want niemand met 'n roukleed aan kon by die poort ingaan nie. In al die provinsies en streke waar die besluit en die wet van die koning bekend geword het, was daar groot droefheid onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gerou, en baie het in sak en as gaan lê. Toe Ester se diensmeisies en eunugs haar hiervan kom vertel, is die koningin oorweldig deur angs. Sy het vir Mordegai klere gestuur om aan te trek en sy rouklere te vervang, maar hy het dit nie aanvaar nie. Ester het toe vir Hatag, een van die koning se eunugs wat hy tot haar beskikking gestel het, ontbied. Sy het hom beveel om uit te vind wat aangaan en waarom Mordegai so optree. Hatag het uitgegaan na Mordegai op die stadsplein voor die koningspoort. Mordegai het hom ingelig oor alles wat met hom gebeur het, insluitend die presiese bedrag silwer wat Haman beloof het om aan die skatkis van die koning te betaal vir die uitwissing van die Jode. Hy het ook 'n afskrif van die geskrewe wet wat in Susan uitgevaardig is om die Jode uit te wis, vir Hatag gegee om aan Ester te wys en die inhoud aan haar mee te deel. Hatag moes haar aansê om na die koning te gaan en hom om genade te smeek en te pleit vir haar volk. Hatag het teruggegaan na Ester en Mordegai se boodskap aan haar oorgedra. Ester het Hatag beveel om vir Mordegai te sê: “Al die dienaars van die koning en al die mense van die provinsies van die koning weet dat daar vir enige man of vrou wat na die koning in sy binneste voorhof gaan sonder dat hulle ontbied is, net een reël geld en dit is dat die persoon doodgemaak word. Die enigste uitsondering is wanneer die koning sy goue septer na die persoon uithou en op hierdie manier so iemand se lewe spaar. En ek, ek is nou al dertig dae lank nie na die koning ontbied nie.” Toe Ester se woorde aan Mordegai oorgedra is, het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie. Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van 'n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir 'n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?” Ester het toe vir Mordegai laat weet: “Gaan versamel al die Jode wat hulle in Susan bevind, en vas ter wille van my. Moet drie dae lank, dag en nag, niks eet of drink nie; ook ek en my diensmeisies sal so vas. Daarna sal ek na die koning gaan, al is dit teen die wet. As ek so moet omkom, kom ek so om.” Mordegai het toe weggegaan en gedoen net soos Ester hom beveel het. Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het. Terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: “Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” Ester het toe geantwoord en gesê: “My versoek en my wens is: As die koning my goedgesind is, en as u dit goedvind om aan my versoek te voldoen en my wens toe te staan, laat die koning en Haman kom na die feesmaal wat ek vir hulle sal voorberei. Môre sal ek doen wat die koning vra.” Haman het op daardie dag bly en in 'n opgeruimde stemming weggegaan. Maar toe Haman vir Mordegai in die koningspoort gewaar en sien dat Mordegai nie uit respek vir hom opstaan en bewe van vrees vir hom nie, het Haman woedend geword vir Mordegai. Maar Haman het homself bedwing en huis toe gegaan. Hy het sy vriende en sy vrou, Seres, laat kom en by hulle gespog oor sy oorvloedige rykdom, sy baie seuns, en al die maniere waarop die koning hom vereer en bevorder het bo die ander •hoë amptenare en dienaars van die koning. “Maar dit is nog nie al nie,” het Haman gesê. “Ek is die enigste persoon vir wie koningin Ester genooi het om saam met die koning na die feesmaal te gaan wat sy voorberei het. En ek is ook môre saam met die koning na haar genooi. Maar dit alles baat my niks solank as wat ek vir Mordegai, die Jood, in die koningspoort sien sit nie.” Seres, sy vrou, en al sy vriende het vir hom gesê: “Laat hulle 'n paal gereedmaak, vyftig el hoog. Praat môre met die koning hieroor, sodat hulle Mordegai daaraan hang. Daarna kan jy opgeruimd saam met die koning na die feesmaal gaan.” Haman het van hierdie voorstel gehou en die paal gereedgemaak. Daardie nag het die slaap die koning ontwyk. Hy het beveel dat die boekrol met die amptelike kronieke, die verslag van daaglikse gebeure, gebring moet word. Toe dit aan die koning voorgelees is, het hulle op 'n inskrywing afgekom dat dit Mordegai was wat onthul het dat die koning se twee paleisamptenare, Bigtan en Teres, die deurwagters, daarop uit was om koning Ahasveros te vermoor. “Watter eer en erkenning het Mordegai daarvoor ontvang?” het die koning gevra. Die jong manne van die koning, sy dienaars, het geantwoord: “Daar is niks vir hom gedoen nie.” Die koning het gevra: “Wie is in die voorhof?” Haman het pas ingekom na die buitenste voorhof van die koninklike paleis om die koning te vra om Mordegai te hang aan die paal wat hy vir hom gereedgemaak het. Die jong manne van die koning het geantwoord: “Kyk, dit is Haman wat in die voorhof staan.” “Laat hom binnekom,” het die koning beveel. Toe Haman binnekom, het die koning hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning graag eer wil betoon?” Haman het in sy hart gesê: “Aan wie anders as aan my sou die koning graag eer wil betoon?” Haman antwoord die koning: “Iemand aan wie die koning graag eer wil betoon – vir so iemand moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self gedra het, en 'n perd waarop die koning self gery het, en wat 'n koninklike hooftooisel op sy kop het. Die kleed en die perd moet gegee word aan een van die vooraanstaande •hoë amptenare van die koning, en hy moet die kleed vir die man vir wie die koning graag wil vereer, aantrek. En hulle moet hom op die perd laat ry oor die stadsplein en voor hom uitroep, ‘So word gemaak met iemand vir wie die koning graag wil vereer!’ ” Die koning het vir Haman gesê: “Maak gou, neem die kleed en die perd soos jy voorgestel het en maak net so met Mordegai, die Jood, wat in die koningspoort sit. Moet niks uitlaat van alles wat jy voorgestel het nie!” Haman het die kleed en die perd geneem. Hy het die kleed om Mordegai gehang en hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand vir wie die koning graag wil vereer!” Mordegai het hierna teruggegaan na die koningspoort, maar Haman is haastig terug na sy huis, bedroef en met 'n bedekte hoof. Haman het vir sy vrou Seres en sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres het vir hom gesê: “As Mordegai, voor wie jou val al begin het, van die Joodse volk afkomstig is, sal jy hom nie kan oorwin nie; jy sal beslis voor hom tot 'n val kom.” Terwyl hulle nog besig was om met hom te praat, het die paleisamptenare van die koning daar aangekom. Hulle was haastig om Haman na die feesmaal te neem wat Ester voorberei het. Die koning en Haman het by koningin Ester gaan eet. Terwyl hulle op die tweede dag van die feesmaal wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” Koningin Ester het geantwoord en gesê: “As ek guns vind in u oë, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my lewe vir my gegee word, dit is my versoek; en die lewe van my volk, dit is my wens. Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg te word, om vermoor en uitgewis te word. Was ons net as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek nog stilgebly het, want so 'n beproewing sou nie genoeg gewees het om die koning daarmee te belas nie. ” Koning Ahasveros vra toe vir koningin Ester: “Wie is hy? En waar is hierdie man wat hom aanmatig om so iets te doen?” En Ester antwoord: “'n Verdrukker en vyand is hierdie bose Haman.” Haman het ineengekrimp van vrees voor die koning en die koningin. Die koning het woedend van die wynbanket af opgestaan en na die tuin van die paleis gegaan, maar Haman het agtergebly om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning reeds oor sy ondergang besluit het. Toe die koning terugkeer van die paleistuin na die feesvertrek, val Haman juis neer op die bank waarop Ester geleun het. Die koning het uitgeroep: “Wil hy die koningin aanrand, selfs hier by my in die paleis?” Die koning se woorde was nog nie koud nie, toe bedek die dienaars al Haman se gesig. Garbona, een van die koning se paleisamptenare het gesê: “Kyk, Haman het selfs 'n paal gereedgemaak vir Mordegai, wat in belang van die koning gepraat het. Daardie paal staan by Haman se huis, vyftig el hoog.” Die koning het gesê: “Hang hom daaraan op!” Hulle het Haman toe gehang aan die paal wat hy vir Mordegai voorberei het. Daarna het die woede van die koning bedaar. Op dieselfde dag het koning Ahasveros die besittings van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Mordegai het voor die koning verskyn, want Ester het vir die koning gesê wat sy verwantskap met haar is. Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy van Haman afgeneem het en dit aan Mordegai gegee. En Ester het vir Mordegai aangestel oor Haman se besittings. Ester het weer met 'n versoek na die koning gegaan. Sy het voor sy voete neergeval en gehuil en hom gesmeek om die onheil af te weer wat Haman, die Agagiet, teen die Jode beplan het. Die koning het die goue septer na Ester uitgesteek. Sy het opgestaan en voor die koning gaan staan en gesê: “As die koning dit goedkeur, en as ek sy guns geniet, as die saak vir die koning aanvaarbaar is, en as die koning my goedgesind is, gee skriftelik opdrag dat die dokumente met die plan van Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, om die Jode uit te delg wat in al die provinsies van die koning is, herroep word. Want hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my volk deur so 'n ramp getref word? En hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my familie uitgewis word?” Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir Mordegai, die Jood, gesê: “Kyk, Haman se besittings het ek vir Ester gegee en vir hom het hulle gehang aan die paal, omdat hy die Jode wou uitmoor. Skryf julle nou na goeddunke in die naam van die koning aan die Jode en verseël dit met die seëlring van die koning, want 'n dokument wat geskryf is in die naam van die koning en verseël is met die seëlring van die koning kan nie herroep word nie.” Die skrywers van die koning is dadelik ontbied, in die derde maand, die maand Siwan, op die drie-en-twintigste dag. Net soos Mordegai beveel het, het hulle alles neergeskryf vir die Jode, die satrape, die •streekgoewerneurs en die •hoë amptenare van die provinsies, vanaf Indië tot by Kus, 127 provinsies. Dit is geskryf in die skrif van elke provinsie en in die taal van elke volk, ook aan die Jode in hulle skrif en hulle taal. Mordegai het in die naam van koning Ahasveros geskryf en die dokumente verseël met die koning se seëlring. Dit is uitgestuur met boodskappers te perd, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal. Die koninklike bevel het aan die Jode in elke stad en dorp die reg gegee om bymekaar te kom en hulleself te verdedig. Enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aanval, kon hulle verdelg, doodmaak en uitroei – vrou en kind – en hulle vyande se eiendom plunder. Dit alles kon op een bepaalde dag in al die provinsies van koning Ahasveros gedoen word, op die dertiende dag van die twaalfde maand, die •maand Adar. 'n Afskrif van die dokument moes as wet in elke provinsie in die openbaar afgekondig word aan alle volke, sodat die Judeërs op hierdie dag gereed kon wees om wraak te neem op hulle vyande. Die boodskappers, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal, het haastig vertrek volgens die koninklike bevel. Die wet is ook afgekondig in die vestingstad Susan. Mordegai het van die koning weggegaan, geklee in 'n koninklike kleed van pers wolstof en linne, 'n groot kroon van goud en 'n mantel van fyn, wit materiaal en purperrooi wol. En die stad Susan het gejubel en gejuig. Vir die Judeërs was dit 'n tyd van lig en vreugde, vrolikheid en eer. In elke provinsie en in elke stad, elke plek waar die woord en wet van die koning bekend geword het, was daar vreugde en vrolikheid onder die Jode, maaltye en feesdae. Baie mense uit die volke van die land het hulle as Jode voorgedoen omdat die vrees vir die Jode hulle oorval het. In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag, moes die wet en bevel van die koning uitgevoer word. Dit was die dag waarvoor die vyande van die Jode gewag het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: Die Jode het diegene wat hulle gehaat het, oorweldig. Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros, om diegene wat hulle ondergang gesoek het, dood te maak. Niemand kon voor hulle stand hou nie, want vrees vir die Jode het al die volke oorval. Al die •hoë amptenare van die provinsies en die satrape, die •streekgoewerneurs en die amptenare wat die koning se sake hanteer, het die Jode gesteun, want vrees vir Mordegai het hulle oorval. Mordegai het immers belangrik geword in die koninklike paleis en berigte oor hom het deur al die provinsies versprei. Ja, die man Mordegai het al hoe magtiger geword. Die Jode het op hulle vyande toegeslaan en met die swaard dood en verwoesting gesaai; hulle het met hulle haters gedoen net wat hulle wou. In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata en Porata en Adalja en Aridata en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak. Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode 'n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. 'n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur. Mordegai het hierdie gebeure opgeskryf. Hy het toe briewe gestuur na al die Jode, naby en ver, in al die provinsies van koning Ahasveros, en hulle gelas om elke jaar die veertiende en die vyftiende dag van die maand van Adar te herdenk as die dae waarop die Jode bevry is van hulle vyande, as die maand waarin hulle droefheid verander is in blydskap en 'n tyd van rou in 'n tyd van feesviering. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed stuur en aan die armes geskenke uitdeel. Die Jode het onderneem om voort te gaan met wat hulle begin het om te doen soos wat Mordegai vir hulle voorgeskryf het. Want Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, die vyand van al die Jode, het beplan om die Jode te vernietig. Hy het deur die Pur, dit is met die lot, beslis dat hulle ontwrig en vernietig moet word. Maar weens Ester se intrede by die koning het hy skriftelik beveel: “Haman se bose plan wat hy teen die Jode bedink het, moet op sy eie kop neerkom.” Toe het hulle hom en sy seuns aan die paal gehang. Daarom noem hulle hierdie dae Purim, na die naam Pur. Op grond van al die woorde in hierdie brief en alles wat hulle van die gebeure gesien en beleef het, het die Jode dit ingestel en hulle daaraan verbind, hulle en hulle nageslag, en almal wat by hulle aansluit, om nie hierdie twee dae na te laat nie, maar om dit altyd jaarliks, soos dit voorgeskryf is, op die vasgestelde tyd te eerbiedig. Hierdie dae moet onthou en gevier word deur elke volgende generasie, deur elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag onder die Jode nie nagelaat word nie en die herinnering daaraan mag onder hulle nageslagte nie vergete raak nie. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, asook Mordegai, die Jood, het met volle gesag hierdie tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. Die briewe is gestuur aan al die Jode in die 127 provinsies van Ahasveros se koninkryk – woorde van vrede en trou – om hierdie dae van Purim te bevestig op die tye soos wat Mordegai, die Jood, en koningin Ester dit vir hulle vasgestel het, en soos wat hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het volgens die voorskrifte van vas en weeklag. 'n Bevel van Ester het hierdie voorskrifte van die Purim bevestig en dit is in 'n •boekrol opgeskryf. Koning Ahasveros het belasting ingestel in die hele land en die eilande van die see. Is al sy groot en magtige dade, tesame met 'n noukeurige verslag van die grootheid van Mordegai wat deur die koning vereer is, nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Medië en Persië nie? Want Mordegai, die Jood, was tweede in bevel onder koning Ahasveros, hoog in aansien onder die Jode en gewild onder baie van sy volksgenote. Hy het hom beywer vir die welvaart van sy volk en ingetree vir die voorspoed van sy hele nageslag. In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste. Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, 'n fees aan te bied. Hulle het dan 'n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle 'n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek. Job het dit elke keer gedoen. Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom. Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek. ” Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af. Toe, op 'n dag, terwyl sy seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, kom daar 'n boodskapper by Job aan en sê: “Die beeste was aan die ploeg, en die donkiemerries het langsaan gewei; toe loods die Sabeërs 'n aanval en vat hulle. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.” Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “Die vuur van God het uit die hemel geval en die kleinvee en werkers verbrand en verteer. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.” Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “Galdeërs het drie eenhede opgestel, 'n plundertog uitgevoer op die kameeltroppe en hulle gevat. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.” Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, toe daar onverwags 'n sterk wind van die woestyn se kant af kom en die vier hoeke van die huis tref. Dit het op die jongmense ingestort en hulle het gesterf. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.” Job het toe opgestaan, sy mantel geskeur, sy kop kaal geskeer, op die grond neergeval en in aanbidding gebuig. Hy het gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word! ” Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie. Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom om sy plek by die Here in te neem. Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede, al het jy My aangestig om hom sonder rede te laat ondergaan.” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Dit is maar 'n vel vir 'n vel. Alles wat aan 'n mens behoort, sal hy gee in ruil vir sy lewe. Maar steek net u hand uit en tas sy beendere en sy vleis aan – hy sal U beslis in u gesig vloek. ” Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, hy is in jou hand, maar sy lewe moet jy spaar.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af. Hy het Job getref met dodelike swere, van kop tot tone. Job het 'n potskerf gevat om hom mee te krap, terwyl hy in die as sit. Sy vrou het vir hom gesê: “Volhard jy steeds in jou onberispelike optrede? Vloek God, en sterf!” Hy het egter vir haar gesê: “Jy praat soos een van die dwase vroue praat. Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” Ondanks dit alles het Job nie met 'n enkele woord gesondig nie. Drie van Job se vriende het gehoor van al die teenspoed wat hom oorgekom het. Hulle het toe van die plekke waar hulle woon, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, op 'n bepaalde plek byeengekom om met hom meegevoel te gaan betuig en hom te gaan bemoedig. Toe hulle van ver af opkyk en hom nie eens herken nie, het hulle hardop gehuil. Hulle het elkeen sy mantel geskeur, en hulle het stof in die lug op gegooi, oor hulle koppe. Hulle het saam met hom op die grond gesit – sewe dae en sewe nagte lank. Niemand het 'n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat die pyn ondraaglik erg was. Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy geboortedag vervloek. Job het toe begin praat en gesê: “ Mag die dag waarop ek gebore is, vergaan, en die nag wat gesê het, ‘'n Seun is verwek.’ Daardie dag – mag dit donker wees; mag God daar bo nie daarna vra nie, mag 'n ligglans nie daaroor skyn nie. Mag donker, ja, stikdonkerte dit opeis, mag wolke daarop toesak; mag 'n verduistering van die dag dit verskrik. Daardie nag – mag 'n diepe duisternis dit in besit neem; mag dit nie verskyn onder die dae van 'n jaar nie, nie in die getal van die maande voorkom nie. Juis daardie nag – mag dit onvrugbaar wees, mag uitroepe van vreugde nie daarin opklink nie. Mag hulle wat dae vervloek, dit verdoem, hulle wat die kuns verstaan om Leviatan wakker te maak. Mag die sterre van dié dag se oggendskemering verduister, mag dit wag op lig, en daar is niks nie; mag dit die wimpers van die dagbreek nie sien nie, omdat dit die deure van my moeder se skoot nie gesluit het nie, nie teenspoed vir my oë verberg het nie. “ Waarom is ek nie dood by geboorte nie? Waarom het ek nie gesterf toe ek uit die moederskoot gekom het nie? Hoekom het knieë my ontvang; hoekom was daar borste, dat ek kon drink? Ja, anders sou ek nou kon lê en in vrede rus, ek sou kon slaap. Daar sou vir my rus wees by konings en die raadsmanne van die wêreld, dié wat vir hulleself puinhope herbou het, of by •hoë amptenare wat goud besit het, wat hulle huise met silwer gevul het. Of soos 'n weggesteekte misgeboorte, sou ek nie bestaan het nie, soos kinders wat nie die lig gesien het nie. Daar hou goddeloses op met die gewerskaf; daar vind dié wie se kragte uitgeput is, rus. Gevangenes is saam kommervry, hulle hoor nie meer die stem van die slawedrywer nie. Klein en groot is daar, die slaaf is vry van sy baas. “ Waarom gee God die lig aan iemand wat hom moet afsloof? Waarom gee Hy die lewe aan mense met verbitterde siele, wat wag vir die dood, maar dit kom nie; hulle wat dieper daarna delf as na verborge skatte; hulle wat van vreugde juig, wat hulle verheug wanneer hulle die graf vind. Waarom gee Hy die lewe aan 'n man wie se pad verborge is, vir wie God aan alle kante afgesper het? Ja, nog voor my brood, daag my gesug op; my geskreeu stroom soos water. As ek vrees vir 'n verskrikking, dan kom dit my oor; dit waarvoor ek bang is, oorval my. Ek kan nie rus vind nie, nie tot rus kom nie; ek kry geen verposing nie. Die onrus daag telkens op.” Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê: “Kan mens 'n woord na jou kant toe waag? Sal jy ontstemd raak? Maar woorde terughou – wie kan dit doen? Kyk, jy het baie mense tereggewys; slap hande het jy sterk gemaak. Jou woorde het die een wat struikel, regop gehelp; wankelrige knieë het jy stewig gemaak. Maar noudat dit jou oorkom, is jy ontstemd; noudat dit jou tref, is jy ontsteld. Is jou ontsag vir God dan nie dit waarop jy staatmaak nie? Is jou hoop nie gevestig op jou onberispelike optrede nie? Dink tog daaraan: Wie het, terwyl hy onskuldig is, omgekom? Waar is opregtes al uitgewis? Wat ek waargeneem het, is: Wie onreg inploeg en teenspoed saai, oes dit ook. Deur die asem van God kom hulle om, deur die wind uit sy neus gaan hulle tot niet. Daar is die gebrul van 'n leeu, die stem van 'n maanhaar, maar die tande van jong leeus word gebreek. By gebrek aan prooi kom die leeumannetjie om, die welpies van die leeuwyfie raak verstrooi. “Na my toe het 'n woord in die geheim gekom; my oor het die fluistering daarvan opgevang. Te midde van verontrustende gedagtes in naggesigte, terwyl 'n diep slaap mense oorval, het vrees en bewing my beetgepak en my hele liggaam laat sidder. 'n Gees het langs my verbygegaan, dit het die hare op my lyf laat rys. Hy het gaan staan, maar ek kon nie sy voorkoms herken nie; die gedaante was reg voor my oë. 'n Fluisterende stem is wat ek gehoor het, ‘Kan 'n mens regverdiger as God wees, of kan 'n man reiner as sy Maker wees? Kyk, as Hy selfs in sy dienaars nie sy vertroue stel nie, en sy boodskappers blameer vir dwaling, hoeveel te meer geld dit dan hulle wat in huise van klei woon, met fondamente in die stof? Vinniger as 'n mot word hulle platgetrap. Tussen dagbreek en sononder word hulle verpletter; sonder dat dit opgemerk word, kom hulle vir ewig om. Word hulle tenttoue nie losgemaak nie? Hulle sterf – sonder wysheid.’ “Roep maar! Sal daar iemand wees wat jou antwoord? Tot wie van die heiliges sal jy jou wend? Want ergernis lei tot die dood van 'n sot, en naywer laat die onverstandige sterf. Ek self het 'n sot sien wortel skiet, maar skielik kon ek sy tuiste in 'n vloek gebruik. Sy kinders is ver van veiligheid; hulle word vertrap in die stadspoort, en niemand kan hulle red nie. Dit wat hy geoes het, word deur hongeres verteer; selfs uit die dorings gaan haal hulle dit; en dorstiges smag na hulle besittings. Ja, onheil kom nie voort uit die stof nie, en teenspoed spruit nie uit die grond nie; maar die mens is vir teenspoed gebore, soos vonke na bo vlieg. “Ek, daarenteen, sou God raadpleeg, aan God sou ek my saak voorlê, aan Hom wat groot en ondeurgrondelike dinge, ontelbare wonders, doen – Hy wat reën gee oor die aarde, wat water uitstuur oor die oop veld, om nederiges op die hoogte te plaas, en hulle wat rou, veilig te maak in die hoogte, Hy wat die planne van listiges verydel, sodat hulle hande niks suksesvol uitrig nie, Hy wat wyses met hulle eie slinksheid vang, sodat die planne van geslepenes vinnig tot 'n einde kom. Oordag stuit hulle op die donker; teen die middag tas hulle rond asof dit in die nag is. Hy verlos 'n behoeftige uit die mag van sterkes, van die swaard in hulle monde. So is daar vir armes hoop, en ongeregtigheid hou die mond toe. “ Kyk, gelukkig is die mens vir wie God teregwys; die tugtiging van die Almagtige – moet dit nie verwerp nie! Want Hy is die een wat pyn veroorsaak, maar ook verbind, Hy verbrysel, maar sy hande genees ook. Uit ses benoudhede sal Hy jou red, in sewe sal boosheid jou nie aantas nie. In hongersnood sal Hy jou loskoop van die dood, in 'n geveg, uit die mag van die swaard. Wanneer die tong gesel, word jy weggesteek; jy hoef nie te vrees vir verwoesting wanneer dit kom nie. Vir verwoesting en honger sal jy lag; vir die wilde diere van die aarde sal jy nie bang wees nie. Want met die klippe van die veld het jy 'n verbond; die diere van die veld handhaaf vrede met jou. Jy sal dit beleef dat jou tent veilig is; en as jy voorraad neem op jou weiveld, vermis jy niks. Jy sal dit beleef dat jou nageslag baie is; jou nakomelinge sal wees soos die plante van die aarde. Jy sal in volle lewenskrag na die graf gaan, soos gerwe op hulle tyd na die dorsvloer gaan. Kyk, dit is wat ons ondersoek het; so is dit. Luister daarna! Beleef dit self!” Job het hierop gereageer en gesê: “As my leed maar net geweeg kon word, my rampspoed daarmee saam op 'n weegskaal geplaas kon word, want dan sou dit swaarder wees as die sand van die oseane. Daarom is my woorde ondeurdag. Ja, die pyle van die Almagtige is in my, sodat my gees die gif daarvan drink. Die verskrikkinge van God neem teen my stelling in. Balk 'n wilde donkie by groen gras, of bulk 'n bees by sy voer? Word smaaklose kos sonder sout geëet, of is daar smaak in die slym van heemswortel? My keel wil dit nie afsluk nie. Ek het 'n afkeer daarvan, asof dit onrein kos vir my is. “ Ag, as my wens tog maar vervul word! Mag God dit gee waarvoor ek hoop – dat God bereid sal wees om my te verpletter! Mag Hy sy hand loslaat en my van die lewe afsny! Dit sal vir my weer vertroosting bring; ondanks die pyn sal ek opspring van vreugde. Hy mag nie deernis betoon nie, want ek het die woorde van die Heilige nie verberg nie. Hoeveel krag het ek oor, dat ek sou wag? Wat is my einddoel, dat ek my lewe sou wou verleng? Is my krag die krag van klippe? Of is my liggaam van brons? Is dit nie so dat ek myself nie kan help nie, dat my vindingrykheid van my weggedryf is nie? “ Iemand wat in wanhoop verkeer, kan reken op die troue liefde van sy vriend, selfs al gee hy ontsag vir die Almagtige prys. Maar my metgeselle is so bedrieglik soos 'n nie-standhoudende spruit, soos die beddings van spruite wat wegvloei – hulle is troebel van ys; sneeu is in hulle weggesteek. Met die tyd droog hulle op, hulle sypel weg. Wanneer dit warm word, verdwyn hulle van waar hulle was, hulle tas na die roetes wat hulle moet volg; hulle loop hulle vas in onherbergsaamheid en gaan tot niet. Karavane van Tema is op die uitkyk, reisigers van Skeba wag vir hulle, maar staan beskaamd, want hulle het gehoop dat hulle water sou kry; hulle het tot daar gekom, maar staan verleë. “Ja, nou het julle so geword – julle sien 'n verskrikking en raak vreesbevange. Het ek dalk gesê, ‘Gee my iets! Gee volgens julle vermoë vir my 'n geskenk! Bevry my uit die hand van teenstanders! Uit die hand van geweldenaars moet julle my vrykoop!’? “Onderrig my, ek sal stilbly; wat ek verkeerd gedoen het, verduidelik dit vir my! Hoe kan opregte woorde krenkend wees? En hoe kan 'n teregwysing van julle kant af hoegenaamd teregwys? Beplan julle om met woorde tereg te wys, maar die woorde van 'n wanhopige beskou julle bloot as wind? Selfs oor 'n vaderlose kind sal julle die lot werp, en julle vriend verhandel. Wees dan nou bereid om na my te kyk. Ek sal beslis nie in julle gesigte lieg nie. Draai tog om! Laat daar nie onreg wees nie! Draai om! Ek het steeds die reg aan my kant, ondanks die onreg. Is daar op my tong enige onreg? Of kan my verhemelte nie rampspoed eien nie? “ Is dwangarbeid nie 'n sterfling se lot op aarde nie? Is sy dae nie maar die dae van 'n dagloner nie? Soos 'n slaaf smag hy na skaduwee; soos 'n dagloner wag hy vir sy loon. So het leë maande my erfdeel geword, en is nagte van teenspoed aan my toegewys. As ek gaan lê, dink ek, Wanneer kan ek opstaan? – maar die aand sleur voort. Ek is sat van rusteloos wees, tot die oggendskemer. My liggaam is oortrek van maaiers en 'n kors stof; my vel het verhard en dit bars oop. My dae is vinniger as 'n wewersklos – dit kom tot 'n einde sonder hoop. Dink daaraan dat my lewe maar 'n asem is; my oë sal nie weer iets goeds sien nie. Die oog van die Een wat na my kyk, sal my nie sien nie. U oë sal op my gerig wees, maar ek sal nie daar wees nie. 'n Wolk raak tot niet en gaan weg; so is iemand wat na die •doderyk afdaal – hy kom nie weer na bo nie. Hy keer nie weer terug na sy huis nie; sy plek ken hom nie meer nie. “ Op my beurt sal ek my mond nie hou nie. Ek wil praat uit die benoudheid van my gees; ek wil kla uit die bitterheid van my siel! Is ek die see of 'n seemonster, dat U 'n wag oor my aanstel? As ek dink my slaapbank sal my troos, my slaapplek sal my klagte help verlig, dan verskrik U my deur drome, deur naggesigte ontstel U my, sodat ek versmoring verkies, die dood verkies bo hierdie liggaam van my. Ek gee oor; ek sal nie vir altyd leef nie. Laat my met rus, want my dae is net 'n asemteug! “ Wat is 'n sterfling, dat U hom so belangrik ag, dat U aan hom aandag gee, hom elke môre besoek, hom elke oomblik toets? Hoe lank nog gaan U nie van my af wegkyk nie, gaan U my nie alleen laat nie – net tot ek my speeksel ingesluk het? Het ek gesondig? Wat het ek U aangedoen, Bewaker van mense? Waarom stel U my as 'n teiken vir U op? Het ek vir U 'n las geword? Waarom vergewe U nie my oortreding nie, skeld U nie my sondeskuld kwyt nie? Want binnekort sal ek in die stof lê; U sal op die uitkyk wees vir my, maar ek sal nie daar wees nie.” Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê: “Hoe lank nog gaan jy hierdie dinge beweer? Die woorde van jou mond is bloot 'n groot klomp wind. Sal God die reg verdraai, of sal die Almagtige geregtigheid verdraai? As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hulle oortreding oorgelaat. As jy self God egter ywerig soek en by die Almagtige pleit; as jy onbesproke en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou waak, dan sal Hy jou regmatige verblyf herstel. En al was jou verlede gering, sal jou toekoms baie voorspoedig wees. “ Ja, gaan doen maar navraag by die vorige geslag; stel vas wat hulle voorouers reeds noukeurig ondersoek het. Ons is immers van gister en ons weet niks nie; ja, ons lewensdae is net 'n skaduwee op aarde. Sal húlle jou nie onderrig nie, met jou praat nie, uit hulle harte argumente aanvoer nie? Sal papirus hoog groei waar daar nie 'n moeras is nie? Sal oewergras gedy waar daar nie water is nie? Dit is nog besig om te groei, is nog nie gesny nie, dan verwelk dit al – voor al die ander grasse. So loop die paaie van almal wat van God vergeet: Die hoop van die godloses gaan tot niet – hy wat sy hoop vestig op dun spinnerakdrade, wat in 'n spinnerak sy vertroue stel. As hy teen sy huis leun, bly dit nie staan nie; as hy daaraan vasgryp, hou dit nie stand nie. Hy is 'n plant vol sap in die son, sy ranke brei uit deur sy tuin. Sy wortels raak vervleg met kliphope, hy is op die uitkyk vir 'n tuiste van klip. As hy uit sy plek gepluk word, verloën sy plek hom met, ‘Ek het jou nie gesien nie.’ Kyk, dit is die vreugde van sy lewenspad, en uit die grond spruit daar 'n ander een. “Kyk, God verwerp nie iemand wat onberispelik optree nie; Hy versterk nie die hand van kwaaddoeners nie. Hy sal weer jou mond vul met gelag, jou lippe met 'n vreugdekreet. Hulle wat jou haat, sal met skande bedek wees; en die tentwoning van die goddeloses sal nie meer daar wees nie.” Job het hierop gereageer en gesê: “Inderdaad! Ek weet dat dit so is. Maar hoe kan 'n sterfling voor God die reg aan sy kant hê? As iemand graag 'n regstryd met Hom wil voer, sal hy hom nie eers een uit 'n duisend keer kan verweer nie. God wat wys van hart en sterk in vermoë is – wie was al in verset teen Hom en het ongedeerd daarvan afgekom? Hy is die een wat berge verskuif sonder dat hulle dit agterkom, wat hulle in sy toorn omkeer; Hy wat die aarde uit sy plek skud, sodat sy pilare bewe; Hy wat die son aanspreek, sodat dit nie skyn nie, en wat so die sterre verseël; wat die hemel oopspan, Hy alleen, wat op die see se rûe trap; wat die sterrebeeld van die Leeu, Orion en die Sewester gemaak het, ook die kamers van die suide; wat groot en ondeurgrondelike dinge, ontelbare wonders, doen. Kyk, Hy kom langs my verby, maar ek sien Hom nie raak nie. Hy gaan verby, maar ek gewaar Hom nie. Kyk, Hy ruk weg; wie kan Hom teenhou? Wie kan vir Hom sê, ‘Wat doen U?’ God wend nie sy toorn af nie – onder Hom kruip die helpers van Rahab. Hoe kan ék my dan teen Hom verweer, my woorde in verweer teen Hom kies, ek wat, al het ek gelyk, my nie sal kan verweer nie? By my teenstander moet ek om genade smeek. As ek my op Hom beroep, en Hy antwoord my, glo ek nie dat Hy op my roepstem sal ag slaan nie, Hy wat my met 'n stormwind vasgryp, en my wonde sonder rede meer maak. Hy laat my nie toe om my asem terug te kry nie, maar versadig my met bitterheid. As dit oor krag gaan – Hy is die Sterke! As dit oor reg gaan, sê Hy, ‘Wie kan My dagvaar?’ Al het ek gelyk, verklaar my mond my skuldig; al tree ek onberispelik op, toon dit dat ek verkeerd is. Ek tree onberispelik op. Ek gee nie om vir my lewe nie; ek verag my bestaan. Dit is om't ewe. Daarom sê ek, ‘Onberispelik of goddeloos – Hy vernietig albei.’ As 'n ramp onverwags die dood bring – Hy dryf die spot met die wanhoop van onskuldiges. Die aarde is oorgegee in die hand van goddeloses; die gesigte van die aarde se regters bedek Hy. As dit nie Hy is nie, wie is dit dan? “ My dae is vinniger as 'n hardloper, dit het weggeglip; dit het niks goeds opgelewer nie, dit gly verby saam met papirusbootjies, soos 'n arend wat sweef bo 'n prooi. As ek sê, ‘Ek wil my klagte vergeet, my gesigsuitdrukking verander en vrolik lyk,’ word ek bang vir al my lyding: Ek weet dat U my nie sal vryspreek nie. Ek is die een wat skuldig sal bly. Waarom sou ek my dan nog vermoei vir niks? Al was ek my met sneeuwater, en reinig my hande met potas, sal U my steeds in 'n kuil dompel, sodat selfs my klere my afstootlik vind. “ Ja, Hy is nie 'n mens, soos ek, dat ek my teenoor Hom kan verweer, en ons saam na die gereg kan gaan nie. As daar maar iemand was wat die saak tussen ons kon besleg, wat sy hand oor ons albei kon hou! God sou sy staf van my moes verwyder; sy verskrikking sou my dan nie ontstel nie. Dan kon ek praat sonder om Hom te vrees; maar in my geval is dit nie so nie. “Ek walg van my lewe! Ek wil aan my klagte vrye teuels gee; uit die bitterheid van my siel wil ek praat. Ek sê vir God, ‘Moet my nie skuldig verklaar nie! Lig my eers in waaroor U met my 'n regstryd voer.’ “ Vind U dit goed dat U verdruk, dat U die werk van u hande verwerp, maar oor die planne van goddeloses lig laat skyn? Het U menslike oë; kyk U soos 'n sterfling kyk? Is u lewensdae soos die dae van 'n sterfling, u jare soos die dae van 'n man, dat U my sondeskuld naspeur, my sonde peil, alhoewel U weet dat ek nie skuldig is nie, en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie? “ U hande het my gevorm, my gemaak; maar U verdelg my geheel en al! Dink tog daaraan dat U my soos klei gevorm het. Wil U my na die stof laat terugkeer? Het U my nie soos melk uitgegiet, my tot kaas laat stol nie, vel en vleis oor my getrek, en my bene en spiere aan mekaar gevleg nie? Die lewe en troue liefde het U aan my gegee; U sorg het oor my gees die wag gehou. Maar hierdie dinge het U in u hart versteek; ek weet dat U dít in gedagte gehad het: As ek sondig, sou U my dophou; van my sondeskuld sou U my nie vryspreek nie. As ek skuldig sou wees, wee my! En as ek gelyk sou hê, kan ek my kop nie lig nie – versadig van skande en sat van my ellende. As ek wel my kop lig – soos 'n leeu jag U my, en toon weer u ontsagwekkende mag teen my. U bring nuwe getuies teen my, U laat u verergdheid oor my toeneem; skofte van dwangarbeid word my opgelê. “ Waarom het U my uit die baarmoeder laat gaan? Ek moes omgekom het, en geen oog moes my gesien het nie. Ek sou dan wees asof ek glad nie bestaan het nie. Van die moederskoot moes ek na die graf geneem word. Is my lewensdae nie min nie? Hou dan tog op! Laat my alleen, sodat ek 'n bietjie vrolik kan wees voordat ek heengaan en nie weer terugkeer nie – na 'n land van donkerte, ja, stikdonkerte, 'n land so duister soos die stikdonkerste duisternis, wanordelik, en waar die glans van lig soos duisternis is.” Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê: “ Moet 'n stortvloed woorde onbeantwoord gelaat word, of 'n loslippige man gelyk gegee word? Sou jou leë praatjies mense laat swyg, en sou jy die spot dryf en niemand jou beskaam nie? Jy beweer, ‘My siening is suiwer, ek is rein in u oë.’ Maar, as God maar net sou praat, sy mond teen jou oopmaak, jou die geheime van die wysheid meedeel, dat dit dubbele voordele bied, dan sou jy besef dat God jou 'n deel van jou sondeskuld laat vergeet. Kan jy die geheimenisse van God ontrafel, of tot die volmaaktheid van die Almagtige deurdring? Dit is hoër as die hemel – wat kan jy vermag? Dit is dieper as die •doderyk – wat kan jy weet? Langer as die aarde is die maat daarvan, en breër as die see. As Hy verbygaan, gee Hy prys of hou bymekaar; en wie kan Hom keer? Want Hy is die een wat vals mense ken en onreg raaksien. Sal Hy nie daaraan aandag gee nie? As iemand met 'n leë kop verstand kon kry, sou 'n wildedonkiehings as 'n mens gebore kon word. “As jy maar net iemand was wat jou hart daarop gerig het, en jou handpalms na Hom uitgestrek het! As daar onreg aan jou hande kleef, raak ontslae daarvan! Moenie ongeregtigheid in jou tente laat woon nie! Want dan sal jy jou kop kan lig sonder 'n skandvlek; jy sal stewig staan en nie vrees nie. Ja, jy sal van teenspoed vergeet; as water wat verbygevloei het, sal jy daaraan dink. Die lewe sal hoër styg as die middagson, die donker sal soos die oggend wees. Jy sal geborge voel, want daar is hoop. Jy sal alles deurkyk en veilig gaan slaap; jy sal gaan lê, en niemand sal jou opjaag nie. Baie mense sal jou guns soek. Maar die oë van goddeloses raak dof en die moontlikheid van ontvlugting is vir hulle verlore; hulle enigste verwagting is om die asem uit te blaas.” Job het hierop gereageer en gesê: “Ja, julle is inderdaad ware volksgenote; en saam met julle sterf die wysheid! Ook ek het verstand, net soos julle. Ek staan nie vir julle terug nie; en by wie is hierdie dinge nie bekend nie? 'n Voorwerp van spot vir sy medemens, dit het ek geword. ‘Toe hy voortdurend na God geroep het, het Hy hom geantwoord!’ Dit is die gespot van 'n regverdige, iemand wat onberispelik optree. ‘Vir 'n ramp is veragting gepas,’ is die mening van die selfversekerde, ‘'n stamp is gepas vir hulle wie se voete swik.’ Die tente van verwoesters staan rustig; en veiligheid heers vir hulle wat God uittart, vir hom in wie se hand God dit laat beland. “Maar gaan vra gerus die diere – hulle sal jou leer, en die voëls van die hemel – hulle sal jou inlig. Of gaan kla by die aarde, wat jou sal leer; die visse van die see sal jou vertel. Wie onder hulle almal weet nie dat die hand van die Here dit gedoen het nie? Dit is Hy in wie se hand die lewe is van alles wat leef, ook die asem van elke mens se liggaam. Toets die oor nie woorde soos die tong kos proe nie? Is daar by grysaards wysheid, en verseker 'n lang lewe insig? By God is wysheid en krag; aan Hom behoort raad en insig. Kyk, as Hy afbreek, word dit nie herbou nie; sluit Hy iemand toe, maak niemand oop nie. Kyk, as Hy water terughou, droog dit op; laat Hy die water vry, verwoes dit die land. By Hom is krag en sukses; aan Hom behoort wie dwaal en laat dwaal – Hy wat raadgewers kaalvoet laat loop en van regters gekke maak. Die boeie waarmee konings bind, maak Hy los, en bind 'n lendedoek om hulle heupe; Hy wat priesters kaalvoet laat loop en gevestigde families tot 'n val bring; wat betroubare raadgewers se spraak wegneem en oudstes van hulle oordeelsvermoë ontneem; wat veragting uitstort oor vooraanstaandes, en die gordel van sterkes losmaak; Hy wat diep geheime uit die donker blootlê, dit wat pikdonker is, na die lig bring; wat nasies aansien gee en hulle tot niet maak, wat nasies laat uitbrei en hulle wegvoer; wat die leiers van volke van die aarde se verstand wegneem, en hulle laat ronddwaal in 'n onherbergsame gebied sonder paaie. Hulle tas rond in die donker sonder lig; en Hy laat hulle rondsteier soos dronkes. “Kyk, my oog het dit alles gesien; my oor het dit gehoor en begryp. Wat julle weet, weet ek ook; ek staan nie vir julle terug nie. Maar ek, met die Almagtige wil ek praat; die saak wil ek graag met God beredeneer. Julle is egter mense wat met leuens pleister, kwaksalwers, julle almal! As julle maar doodstil wou bly! Dit sou vir julle as wysheid geld. Luister asseblief na my pleidooi; op die aanklag van my lippe moet julle ag slaan. Wil julle namens God onregverdige argumente aanvoer, namens Hom bedrieglike argumente aanvoer? Wil julle partydig wees vir Hom, of namens God 'n regstryd voer? Sal dit goed afloop as Hy julle onder kruisverhoor neem? Of sal julle Hom mislei soos mens 'n sterfling mislei? Hy sal julle beslis teregwys as julle in die geheim partydig is. Sal sy majesteit julle nie ontstel nie, die vrees wat Hy inboesem, julle nie oorval nie? Julle stellings is spreuke in die stof; julle antwoorde word antwoorde van klei! “ Swyg voor my, laat ek 'n keer praat! Laat dan maar oor my kom wat wil. Om watter rede neem ek my eie vlees tussen my tande, en plaas ek my eie lewe in die palm van my hand? Kyk, Hy kan my doodmaak, maar ek gaan nie wag nie. Ek wil net my optrede in sy teenwoordigheid verdedig. Selfs dit sal vir my bevryding bied, want die godloses kom nie in sy teenwoordigheid nie. Luister aandagtig na my woorde, laat my uiteensetting in julle ore klink. Kyk tog, ek het die saak uiteengesit; ek weet dat ek die reg aan my kant het. Wie is die een wat geldige argumente teen my kan aanvoer? Want dan sou ek swyg en omkom. “Net twee dinge moet U my nie aandoen nie, dan sal ek vir u teenwoordigheid nie wegkruip nie: U hand, hou dit ver van my, en u verskrikking, laat dit my nie ontstel nie. Roep maar! Ek sal myself verdedig. Of, ek sal praat, en antwoord U my. Hoeveel sondeskuld en sondes het ek? My oortreding en my sonde, maak dit aan my bekend! Waarom verberg U u gesig en beskou U my as 'n vyand van U? Sal U 'n windverwaaide blaar verskrik, en 'n droë strooihalm agternasit? Ja, bitter dinge teken U teen my aan; die sondeskuld van my jeug maak U my erfdeel. U sit my voete in die blok; U hou al my bewegings dop; U plaas u merk op my voetsole. En so iemand, hy vergaan soos iets wat verrot, soos 'n kledingstuk wat die motte vreet. “ 'n Mens, gebore uit 'n vrou, se lewensdae is van korte duur en vol onrus. Soos 'n blom kom hy op en verwelk; soos 'n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie. Ja, op so een hou U u oë gerig, hom betrek U in 'n regsaak met U. Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie! As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vasstaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie, kyk dan weg van hom af, sodat hy kan ophou werk, totdat hy soos 'n dagloner tevrede is met sy dag. Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie. Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond, van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos 'n jong plant. Maar 'n man sterf en is magteloos; 'n mens kom om – en waar is hy dan? Water verdwyn uit 'n see, en 'n rivier droog op en lê uitgedor; so gaan lê 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie. “As U my maar in die •doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, 'n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou! As 'n man sterf, sal hy weer leef? Al die dae van my dwangarbeid sou ek wag tot die einde van my skof. U sou roep en ek, ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang. Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie. Verseël in 'n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister. “Maar 'n berg stort ineen en verkrummel, 'n rots verskuif uit sy plek; water verweer selfs klippe, stortreën spoel die stof van die grond weg – net so laat U 'n sterfling se hoop tot niet gaan. U oorweldig hom vir altyd, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg. Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie; hulle word verkleineer, maar hy merk dit nie op nie. Sy liggaam ervaar egter pyn, en hy treur net oor homself.” Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê: “Sal 'n wyse antwoord met sinlose kennis, en sy binneste met die oostewind vul? Kan hy sy saak verdedig met 'n argument wat nie sin maak nie, met woorde waarmee hy niks uitrig nie? Jy is boonop die een wat ontsag vir God ondermyn; jy skat oorpeinsing voor God gering. Ja, jou sondeskuld vuur jou mond aan; jy kies die taal van geslepenes. Jou eie mond verklaar jou skuldig – nie ek nie; jou lippe getuig teen jou. “Is jy die eerste mens wat gebore is? Is jy voor die heuwels voortgebring? Luister jy na die vertroulike beraadslaging van God, en beperk jy wysheid net tot jouself? Wat weet jy wat ons nie weet nie? Watter insig het jy waarin ons nie deel nie? Daar is sowel gryskoppe as ou manne onder ons, ryper in jare as jou vader. “Is dit te gering vir jou – God se vertroostinge, 'n sagte woord aan jou? Waarom voer jou hart jou mee, waarom laat jou oë jou in die steek, dat jy jou gegriefdheid teen God rig, dat daar woorde uit jou mond kom? Wat is 'n sterfling, dat hy volkome reg sou wees, dat hy gelyk sou hê – iemand gebore uit 'n vrou? Kyk, God stel selfs in sy heiliges nie vertroue nie – ook die hemel is nie rein in sy oë nie – hoeveel minder 'n mens wat afstootlik en ontaard is, wat ongeregtigheid soos water drink! “Ek sal jou onderrig, luister na my! Dit is wat ek gesien het, en ek wil vertel wat die wyses bekend gemaak en nie weggesteek het nie, op gesag van hulle voorvaders, hulle, die enigstes aan wie die land gegee is, toe geen buitestanders nog tussen hulle deurgetrek het nie: Al die dae van sy lewe krimp 'n goddelose ineen van angs, ja, tydens die volle getal jare wat weggesit is vir 'n geweldenaar. Die geluid van verskrikkinge is in sy ore; in 'n tyd van voorspoed oorval 'n verwoester hom. Hy glo nie dat hy uit die donker sal terugkeer nie; hy word voortdurend dopgehou, met die oog op teregstelling. Hy dwaal rond as kos vir die aasvoëls; hy weet dat deur sy eie toedoen die dag van duisternis gereed is. Benoudheid en neerslagtigheid verskrik hom – dit oorweldig hom soos wanneer 'n koning gereedmaak vir die aanslag; omdat hy sy hand teen God uitgesteek het, hom teenoor die Almagtige magtig gehou het, hardnekkig op Hom afgestorm het met sy dik, knobbelrige skild. Al blink sy gesig van die vet en het hy 'n vetrol om sy middel, en al het hy verwoeste stede bewoon – huise wat onbewoonbaar moes bly, wat bestem was om kliphope te wees – hy sal nie ryk bly nie, sy welvaart sal nie standhou nie; sy besittings sal nie deur die land uitbrei nie. Hy sal die donker nie ontwyk nie. 'n Vlam sal sy loot laat verskrompel, sodat hy verdwyn deur die asem van God se mond. Hy moet nie op nietigheid vertrou nie – hy word mislei; want nietigheid sal hy as ruilware kry. Voor sy tyd word dit vervul; sy takke sal nie vol blare wees nie. Hy skud sy groen druiwe soos 'n wingerdstok af, en gooi sy bloeisels soos 'n olyfboom af. Ja, die bende godloses is onvrugbaar, en vuur verteer die tente wat deur omkopery verkry is. Hulle is swanger van teenspoed, en gee geboorte aan onreg, hulle skoot berei bedrog voor.” Job het hierop gereageer en gesê: “Ek het al baie sulke woorde gehoor! Almal van julle is treurige troosters! Is dit nou die einde van jou woorde van wind? Of wat dryf jou dat jy bly antwoord? Ook ek sou soos julle kon praat as julle in my plek was. Ek sou woorde aanmekaar kon ryg teen julle, my kop oor julle meewarig skud. Ek sou julle met die woorde van my mond kon versterk; die meegevoel van my lippe sou verligting bring. As ek praat, bedaar my pyn nie. En as ek ophou – sou dit my dan verlaat? “Maar nou – God het my uitgeput. U het almal in my omgewing met vrees vervul. U het my vasgegryp – dit dien as getuienis; die leuen oor my staan teen my op, dit getuig openlik teen my. Sy toorn het my verskeur, my as 'n vyand behandel. Teen my het Hy op sy tande gekners; my teenstander het my met sy oë deurpriem. Hulle het hulle monde wyd teen my oopgesper, my beledigend op die wange geslaan; hulle span teen my saam. God lewer my oor aan misdadigers, in die hande van goddeloses werp Hy my. Ek was sorgeloos, maar Hy het my rondgeruk, my aan die nek gegryp en aan stukke gebreek. Hy het my as 'n teiken vir Hom opgestel; sy pyle vlieg rondom my, sonder genade deurboor Hy my niere, Hy stort my gal op die grond uit. Hy slaan bres ná bres in my; soos 'n held storm Hy op my af. “'n Roukleed het ek bo-oor my naakte vel vasgewerk, ek het my krag in die stof laat sink. My gesig is rooi van die gehuil; en daar is donker skaduwees om my oë – al kleef daar geen geweld aan my handpalms nie, en al is my gebed suiwer. Grond, moenie my bloed bedek nie, laat daar geen rusplek vir my hulpgeroep wees nie. Maar nou, kyk, my getuie is in die hemel, my pleitbesorger is in die hoogte; die een wat vir my voorspraak maak, is my vriend. By God stort my oog trane; maar die voorspraak sal vir 'n man by God pleit soos 'n mens vir sy vriend pleit. Want min jare sal verloop voordat ek op 'n pad gaan waarmee ek nie sal terugkeer nie. “My gees is neerslagtig, my dae is uitgedoof; die graf wag op my. Bespotting is beslis my lot; op hulle teenkanting bly my oog rus. Hou asseblief my pand by U. Wie anders sal vir my as borg optree? U het immers hulle harte van insig weerhou; daarom sal U hulle nie na die hoogte neem nie. Wie vriende aankla vir eie voordeel – sy kinders se oë sal dof raak. “ God het van my 'n spreekwoord onder mense gemaak; soos spoeg in die gesig het ek geword. My oë is dof van leed; al my ledemate is maar net soos 'n skaduwee. Opregtes staan verslae hieroor; 'n onskuldige raak ontsteld oor 'n godlose. 'n Regverdige hou op sy pad, en wie rein hande het, vermeerder sy krag. Maar julle kan almal maar aanhou terugkom. Ek sal niemand onder julle vind wat wys is nie. “ My dae is verby, my planne is daarmee heen, ja, die begeertes van my hart. Van die nag maak hulle dag: ‘Die lig is naby, juis omdat dit donker is.’ As ek my hoop op iets moet vestig: Die •doderyk is my tuiste, in die donker het ek my bed oopgerol; vir die grafkuil het ek geskreeu, ‘Jy is my pa!’ vir die wurms, ‘My ma!’ en ‘My suster!’ Waar is my hoop dan? Ja, my hoop – wie sien dit nog? Sal dit saam met my afgaan na die doderyk? Sal ons saam wegsink in die stof?” Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê: “Hoe lank gaan julle nog tyd bestee aan woorde? Kom tot insig! Dan kan ons praat. Waarom word ons as vee beskou? Waarom is ons stompsinnig in julle oë? Jy, 'n mens wat homself verskeur in sy toorn – moet die aarde ter wille van jou verlate lê, rotse uit hulle plek verskuif word? “ Boonop, die lig van goddeloses word uitgedoof; die vlam van hulle vuur gee nie meer 'n gloed af nie. Die lig in sy tent raak donker, sy lamp bo hom word uitgedoof. Sy kragtige treë word belemmer, sy eie raad bring hom tot 'n val. Ja, hy word deur sy eie voete in 'n vangnet ingelei; hy loop heen en weer oor die latwerk bo 'n vanggat. 'n Valstrik gryp hom aan die hakskeen, 'n strik vang hom vas. 'n Vangriem is vir hom op die grond versteek, 'n lus lê vir hom in die voetpad. Van alle kante af maak verskrikkinge hom beangs, dit sit op sy hakke. Sy krag is uitgeput, teenspoed staan gereed vir sy val. Dit verteer sy vel broksgewys; hierdie eersgeborene van die dood verteer hom broksgewys. Uit sy tent, waar hy hom veilig voel, word hy weggeruk; dit dryf hom na die koning van verskrikkinge. Niks van sy besittings sal in sy tent oorbly nie; swael sal oor sy woonplek uitgestrooi word. Aan die onderkant verdroog sy wortels, aan die bokant verwelk sy takke. Sy nagedagtenis verdwyn van die aarde af; hy het nie meer 'n naam op straat nie. Hulle dryf hom uit die lig na die donker, van die aarde af verdryf hulle hom. Hy het geen kind of nageslag by sy mense nie, geeneen wat oorbly in sy blyplekke nie. Oor sy dag staan die mense in die weste verslae, en is die mense in die ooste met afgryse vervul. Ja, so is die woonplekke van 'n boosdoener, so is die plek van hom wat God nie geken het nie.” Job het hierop gereageer en gesê: “Hoe lank gaan julle my nog teister, my met woorde verbrysel? Dit is nou tien keer dat julle my verneder het; skaamteloos teister julle my. As ek inderdaad onwetend gesondig het, is my onopsetlike sonde net my saak. As julle julle inderdaad bo my verhef, my verleentheid as bewys teen my wil aanvoer, besef dan dat dit God is wat my te na gekom het, en dat dit sy net is wat Hy om my gespan het. Kyk, ek skreeu, ‘Geweld!’ maar ek kry geen antwoord nie; ek roep om hulp, maar daar is geen geregtigheid nie. Hy het my lewenspad met klippe versper, sodat ek nie verby kan kom nie; oor my paaie het Hy die donker laat toesak. Hy het my van my waardigheid gestroop, die kroon van my kop verwyder. Hy het my aan elke kant afgebreek, en ek moes gaan. Hy het my hoop ontwortel soos 'n boom. Hy het sy toorn teen my laat ontbrand, my as een van sy teenstanders beskou. Sy troepe trek saam; hulle vul hulle beleëringswal teen my op, reg rondom my woonplek slaan hulle laer op. “ My volksgenote het Hy van my verwyder, mense wat my ken, draai net eenvoudig van my af weg. My bloedverwante daag nie meer op nie; my vertrouelinge het my vergeet. •Vreemdelinge wat by my tuis is en my slavinne beskou my as 'n buitestander; in hulle oë is ek 'n vreemde. Na my slaaf roep ek, maar hy antwoord nie; met my eie mond moet ek hom smeek. My asem is weersinwekkend vir my vrou, ek is walglik vir my broers en susters. Selfs jong seuns verwerp my; as ek wil opstaan, draai hulle die rug op my. Al my vertrouelinge vind my afstootlik; hulle wat ek liefhet, het teen my gedraai. Ek is net vel en been, en ek gaan net my tandvleise oorhou. “Kry my tog jammer! Kry my tog jammer! Ja, julle, my vriende! Want dit is die hand van God wat my getref het. Waarom vervolg julle my soos God, en kry nie genoeg van my vleis nie? Kon my woorde nou maar neergeskryf word, in 'n boekrol vasgelê word, met 'n ystergriffel en lood vir altyd in 'n rots gegraveer wees! Maar ek, ek weet: My Losser leef! Uiteindelik sal Hy op aarde opstaan. Nadat hulle my vel so afgeskeur het, sal ek, 'n mens van vlees en bloed, God sien, wat net ek sal sien; my eie oë, en niemand anders nie, sal Hom sien. My hele wese smag daarna. As julle dink, ‘Hoe sal ons hom vervolg? Die wortel van die saak is by hom te vinde,’ moet julle self die swaard vrees – woede is immers 'n sondeskuld wat die swaard verdien – sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.” Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê: “My verontrustende gedagtes laat my dan nou antwoord, op grond van die ongeduld in my: 'n Teregwysing wat my verneder, moes ek aanhoor; hy antwoord my met 'n gesindheid buite my begrip. Dit weet jy tog: Van die vroegste tye af, vandat God die mens op aarde geplaas het, is die gejuig van goddeloses van korte duur, en die vreugde van 'n godlose net vir 'n oomblik. Al styg sy selfverheffing ten hemele, en raak sy kop aan die wolke, soos sy eie ontlasting gaan hy vir altyd tot niet; dié wat hom gesien het, sal vra, ‘Waar is hy?’ Soos 'n droom vlieg hy weg, sonder om weer gevind te word; hy word verdryf soos 'n naggesig. Die oog wat hom raakgesien het, sien hom nie meer nie, en sy plek merk hom nie meer op nie. Sy kinders moet die armes vergoed; sy eie hande gee sy rykdom terug. Sy liggaam was vol van sy jeugdige krag, maar saam met hom lê dit in die stof. “ Al smaak die kwaad soet in sy mond, al steek hy dit onder sy tong weg, al gaar hy dit op en gee dit nie prys nie; al hou hy dit terug in sy mond, word sy kos in sy ingewande verander; dit is die gif van kobras in sy binneste. Die rykdom wat hy ingesluk het, sal hy opgooi; God sal dit uit sy maag dryf. Die gif van kobras suig hy op, die tong van 'n adder maak hom dood. Laat hy nie met vreugde kyk na die spruite, na die riviere, die strome heuning en dikmelk nie. Wat moeisaam verwerf is, gee hy telkens terug; hy sluk dit nie in nie. Sy handelswins sal hy nie geniet nie, omdat hy armes mishandel het, hulle in die steek gelaat het; op huise wat hy nie gebou het nie, het hy beslag gelê. Omdat sy maag nie tevredenheid ken nie, sal hy nie met sy kosbaarhede wegkom nie. Niks ontkom aan sy vraatsug nie; daarom sal sy voorspoed nie duur nie. Ten spyte van al sy oorvloed raak hy in die noute; die volle krag van teenspoed kom op hom af. Om sy maag vol te maak, stuur God sy brandende toorn teen hom, Hy laat dit op hom neerreën, op sy liggaam. Vlug hy weg van ysterwapens, deurboor 'n bronspyl hom. Hy trek dit uit; en kom dit uit sy rug uit, blink dit van sy gal. Skrikbeelde oorval hom dan. Volledige duisternis lê gereed vir wat hy weggesit het; 'n vuur wat nie aangeblaas is nie, sal dit verteer. Oorlewendes in sy tent kom sleg daarvan af. Die hemel ontbloot sy sondeskuld, en die aarde kom teen hom in opstand. Vloedwaters sal sy huis wegvoer, waterstrome op die dag van God se toorn. Van God se kant af is dít die erfdeel van 'n goddelose mens, die erfenis deur God aan hom toegesê.” Job het hierop gereageer en gesê: “Luister goed na my woorde – dit sal julle vertroosting aan my wees. Verdra my nou, ek sal praat; as ek klaar gepraat het, kan jy verder spot. “Is ek die een wat my klagte teen 'n mens rig? En waarom mag ek dan nie ongeduldig wees nie? As julle aan my aandag skenk, sal julle verbyster wees, en julle hande voor julle monde hou. As ek daaraan dink, is ek ontsteld en trek 'n siddering deur my lyf. Waarom bly goddeloses aan die lewe? Waarom word hulle oud, groei hulle mag selfs? Hulle nageslag is bestendig in hulle teenwoordigheid, by hulle; hulle nakomelinge is daar voor hulle oë. Hulle huise is veilig, sonder verskrikking; en die roede van God is nie op hulle nie. Hulle bulle dek die koeie sonder om te faal, hulle koeie kalf en het nie misgeboortes nie. Hulle laat hulle seuntjies toe om rond te loop soos kleinvee; hulle kinders huppel rond. Begelei deur tamboeryne en liere sing hulle; hulle is vrolik as hulle die klank van fluite hoor. Hulle eindig hulle lewensjare in voorspoed, en gaan rustig af na die •doderyk. Hulle sê vir God, ‘Bly weg van ons af! Om u paaie te ken, pas ons nie. Wie is die Almagtige nou eintlik dat ons Hom moet dien? En wat baat dit ons as ons biddend by Hom pleit?’ Kyk, hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie; die planne van goddeloses is ver van my. Hoe dikwels word die lamp van goddeloses uitgedoof en oorval teenspoed hulle, die verwoesting wat Hy in sy toorn uitdeel? Word hulle soos strooihalms voor die wind, soos kaf wat deur 'n stormwind weggedra word? Julle sê, ‘God spaar sy onheil vir iemand se kinders.’ Hy moet dit liewer aan die persoon self vergeld, sodat hy dit beleef. Sy oë moet sy ondergang sien, van die Almagtige se woede moet hy drink. Wat gee hy immers om vir sy huisgesin ná hom wanneer die getal van sy maande tot 'n einde gekom het? Sal hy dan aan God kennis kan meedeel, terwyl God selfs hulle wat verhewe is, oordeel? Een persoon sterf terwyl hy oor al sy kragte beskik – heeltemal onverstoord en sorgeloos, met sy emmers vol melk, en sy beenmurg vogtig. 'n Ander persoon sterf met 'n verbitterde siel, sonder dat hy voorspoed gesmaak het. Saam lê hulle in die stof, en die maaiers bedek hulle albei. “Kyk, ek ken julle gedagtes, die versinsels waarmee julle my geweld aandoen. As julle sê, ‘Waar is die huis van vooraanstaandes? Waar is die tentwonings van goddeloses? ’ het julle nie by reisigers navraag gedoen en op hulle tekens ag geslaan nie? Ja, op die dag van teenspoed word 'n bose mens gespaar; op die dag van woedebuie word hy veilig gelei. Wie sal hom sy optrede openlik verwyt? En wat hy aangevang het – wie gaan hom daarvoor vergeld? Hy egter, word na die graf geneem; en oor sy graf hou iemand wag. Die kluite van die skag is vir hom soet. Alle mense sal hom volg, en dié wat hom voorafgegaan het, is ontelbaar. Hoe kan julle my troos met nietigheid? Julle antwoorde kom uiteindelik neer op ontrou!” Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê: “ Kan 'n man vir God van waarde wees? Ja, kan selfs iemand met insig vir Hom van waarde wees? Vind die Almagtige vreugde daarin wanneer jy regverdig optree, of hou dit vir Hom voordeel in wanneer jy onberispelik optree? Is dit oor jou ontsag vir Hom dat Hy jou teregwys, met jou in 'n regstryd betrokke raak? Is jou boosheid nie groot nie? Daar is geen einde aan jou sondeskuld nie! Ja, jy het sonder rede 'n pand geneem van jou volksgenote, die klere van halfnaaktes afgestroop. Jy het geen water te drinke gegee aan wie uitgeput was nie, van wie honger was, het jy brood weerhou. Mense met mag, vir hulle was grond beskikbaar, dié met aansien, hulle kon daarop woon. Weduwees het jy met leë hande weggestuur, die hande van vaderlose kinders is afgekap. Daarom is daar valstrikke rondom jou, en oorweldig vrees jou onverwags. Of sien jy nie die duisternis, die watervloed wat jou bedek nie? “ Is God nie in die hoë hemel nie? Kyk maar net na die hoogste sterre, ja, kyk hoe hoog is hulle! Maar jy sê, ‘Wat weet God? Kan Hy deur diepe duisternis 'n oordeel vel? Wolke omhul Hom; Hy sien nie terwyl Hy bo die hemelkoepel rondwandel nie.’ Wil jy by die oeroue pad hou wat bose mense oopgetrap het, hulle wat voor hulle tyd weggeruk word, hulle wie se fondament deur 'n rivier weggevoer word, hulle wat vir God gesê het, ‘Bly van ons af weg!’ en, ‘Wat kan die Almagtige aan ons doen?’ en dit terwyl Hy die Een is wat hulle huise gevul het met die goeie? Maar die planne van goddeloses is ver van my. Regverdiges sien dit en is bly. Onskuldiges dryf die spot met hulle, ‘Voorwaar, ons teenstanders is uitgewis, en wat van hulle oor was, is deur vuur verteer.’ “As jy jou maar met Hom versoen, sal jy daardeur vrede hê; dan sal die goeie weer na jou toe kom. Aanvaar tog die onderrig uit sy mond, en hou sy woorde in jou hart. As jy terugkeer na die Almagtige, sal jy herbou word – as jy onreg uit jou tent verwyder. Gooi gouderts in die stof, goud van Ofir tussen die rotse van die spruite. Dan sal die Almagtige jou gouderts en uitgesoekte silwer vir jou wees. Ja, dan sal jy jou vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef. Jy sal by Hom pleit en Hy sal jou verhoor; jou beloftes sal jy betaal. Jy sal oor 'n saak besluit, en dit sal vir jou vervul word; oor jou paaie sal 'n lig skyn. Wanneer mense iemand verneder, sal jy sê, ‘Dit is hoogmoed!’ Wie neergeslane oë het, verlos Hy. Hy bevry selfs iemand wat nie onskuldig is nie, iemand wat sal ontkom omdat jou hande skoon is.” Job het hierop gereageer en gesê: “Ook vandag is my klag rebels; sy hand is swaar, ten spyte van my gesug. Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, as ek maar tot by sy vaste woonplek kon kom! Ek sou die saak voor Hom uiteensit; my mond sou ek vul met pleitredes. Ek sou kennis neem van die woorde waarmee Hy teen my getuig; ek sou begryp wat Hy vir my sê. Sou Hy met groot krag 'n regstryd teen my voer? Nee, maar Hy sal aan my aandag gee. 'n Opregte sou daar met Hom redeneer; en ek sou vir altyd ontkom aan my regter. Kyk, gaan ek oos, is Hy nie daar nie, en wes, dan gewaar ek Hom nie. In die noorde, terwyl Hy werk, merk ek Hom nie op nie; verhul Hy Hom in die suide, sien ek Hom nie raak nie. Ja, Hy ken die pad waarop ek gaan; as Hy my toets – soos goud sal ek daar uitkom. In sy spoor het my voete gebly; by sy pad het ek gehou, en nie afgedraai nie. Die opdrag van sy lippe – daaraan het ek my nie onttrek nie; in die vou van my kleed het ek die woorde uit sy mond in bewaring gehou. “Maar Hy is uniek – wie kan Hom teengaan? Wat Hy graag wil doen, dit voer Hy uit. Ja, Hy sal wat vir my bestem is, volbring. Hy het baie dinge soos hierdie in gedagte. Daarom staan ek verbysterd voor Hom; as ek daaroor nadink, vrees ek Hom. Dit is God wat my swak van hart maak; dit is die Almagtige wat my verbysterd laat. Ja, ek word nie stilgemaak deur die donker nie, deur die feit dat ek self deur diepe duisternis omhul word nie. “Waarom word vaste tye nie opsy gesit deur die Almagtige nie, en waarom sien dié wat Hom ken, nooit sy dae nie? Mense verskuif grense, hulle buit troppe vee en laat dit wei. Hulle jaag die donkie van vaderlose kinders weg, en neem die bees van 'n weduwee as pand. Hulle druk behoeftiges van die pad af; saam skuil magteloses van die land. Kyk, soos wildedonkies in die woestyn trek hulle uit vir hulle daaglikse werk – op soek na iets te ete. Die Araba voorsien kos vir hulle en hulle kinders. In die veld maak hulle voer bymekaar; in die wingerde van goddeloses maak hulle die naoes bymekaar. Halfkaal bring hulle die nag deur, sonder 'n bokleed, met geen bedekking teen die koue nie. Hulle is deurnat van die reën in die berge, en staan styf teen 'n rots aangedruk, sonder skuilplek. 'n Vaderlose kind word van die bors weggeskeur; wat aan die magtelose is, word as pand geneem. Halfkaal loop hulle rond, sonder bokleed; honger, dra hulle gerwe. Tussen goddeloses se terrasmure pars hulle olywe; hulle trap parskuipe, terwyl hulle dors ly. In die stad kreun sterwendes, die kele van gewondes roep om hulp; maar God slaan nie ag op die ongerymdheid nie. “ Daar is dié wat in opstand is teen die Lig; hulle erken nie sy weë nie, hulle is nie tuis op sy paaie nie. Teen ligdag staan die moordenaar op; hy maak magteloses en behoeftiges dood, en snags is hy soos 'n dief. Die egbreker hou die skemer in die oog en sê, ‘Geen oog sal my sien nie’; en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig. Hulle breek in die donker by huise in. Bedags sluit hulle hulleself toe, hulle ken die lig nie. Ja, vir hulle almal saam is stikdonkerte soos die môrelig; hulle is immers vertroud met die verskrikkinge van 'n stikdonker nag. “ Mag hulle vinnig wegdryf op die water! Mag hulle erfdeel in die land in 'n vervloeking gebruik word; mag hulle nie in die rigting van die wingerde gaan nie. Droë grond en hitte raap sneeuwater weg, net soos die •doderyk hulle wat gesondig het. Mag die moederskoot hulle vergeet; mag die maaiers hulle soet vind; mag hulle nie meer onthou word nie. Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word – hulle wat 'n onvrugbare sonder kinders kaal stroop, aan 'n weduwee niks goeds doen nie. God sal die magtiges wegsleep deur sy krag. Al staan hulle op, is hulle lewens nie seker nie. Hy gee aan hulle veiligheid, en daarop steun hulle; maar sy oë hou hulle paaie dop. Vir 'n kort rukkie verhef hulle hulleself, maar dan is hulle nie meer daar nie. Hulle sink neer soos alle dinge, en word bymekaargemaak; soos die hoogste koringaar word hulle afgesny. As dit nie so is nie, wie sal my tot leuenaar maak, en my woorde as niksseggend afmaak?” Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê: “ Om te heers en vrees in te boesem, is eie aan God, Hy wat vrede handhaaf in sy hoë hemele. Kan die getal van sy troepe vasgestel word? Oor wie gaan sy lig nie op nie? Hoe kan 'n sterfling dan regverdig wees voor God? Hoe kan iemand uit 'n vrou gebore, rein wees? Kyk, in sy oë is selfs die maan nie helder en die sterre nie rein nie, hoeveel minder nog 'n sterfling, 'n maaier, 'n mensekind, 'n wurm!” Job het hierop gereageer en gesê: “Hoe het jy nie die kragtelose te hulp gekom nie, die arm van die een wat nie krag oor het nie, gehelp! Hoe het jy nie raad gegee aan die onwyse, en vindingrykheid in oormaat geopenbaar nie! Met wie se hulp het jy die woorde meegedeel, en wie se asem het uit jou na vore gekom? “ Die skimme krimp ineen – dié wat onder die water is, en dié wat daarin woon. Die •doderyk staan naak voor Hom; daar is geen bedekking vir die onderwêreld nie – voor Hom wat die noorde oopspan oor die niet, wat die aarde ophang aan niks; wat die waters in sy wolke saambind, sonder dat die wolkmassa daarvan oopskeur; Hy wat die aansig van die troon versper deur sy wolkmassa daaroor uit te sprei. Hy het sirkelvormig 'n grens getrek oor die oppervlakte van die water tot waar lig by donker eindig. Die pilare van die hemel wankel en staan verslae deur sy dreiging. Deur sy krag het Hy die see laat bedaar, deur sy insig het Hy Rahab verbrysel. Deur sy asem maak Hy die hemel helder; sy hand deurboor die vinnige slang. Kyk, dit is maar net die buitelyne van sy weë. Wat ons van Hom hoor, is maar 'n gefluisterde woord. Sy donderende krag – wie begryp dit?” Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê: “ So waar as wat God leef, Hy wat my regsaak ter syde gestel het, die Almagtige, wat my met 'n verbitterde siel gelaat het, ja, solank as wat my asem nog in my is, die lewensasem wat God gee, nog in my neus is – my lippe sal geen onreg spreek nie, en my tong geen bedrog kwytraak nie. Ek sal julle nooit gelyk gee nie! Totdat ek te sterwe kom, sal ek nie van my onberispelike optrede afsien nie. Aan my onskuld hou ek vas, ek sal dit nie laat los nie; my gewete pla my nie oor enige van my lewensdae nie. “ Mag my vyand as die skuldige daar staan, die een wat my teenstaan, as die boosdoener; want watter hoop het die godlose as God sy lewe kortknip, dit opeis? Sal God sy hulpkrete hoor as benoudheid hom oorval? Of sal hy vreugde vind by die Almagtige? Sal hy God enige tyd kan aanroep? Ek sal julle onderrig oor God se hand; wat die Almagtige in gedagte het, sal ek nie verberg nie. Kyk, julle almal het dit self gesien; waarom hou julle dan aan met hierdie nuttelose gepraat? Dit is die erfdeel wat 'n goddelose mens van God kry; dit is die erfenis van geweldenaars wat hulle van die Almagtige ontvang: As sy seuns vermeerder, is hulle vir die swaard bestem; sy nakomelinge sal nie versadig word met brood nie. Dié onder hulle wat vrykom, word deur die dood begrawe; hulle weduwees sal nie huil nie. Al hoop hy silwer op soos stof, en stapel hy klere op soos hope klei – hy stapel wel op, maar 'n regverdige sal dit dra, en die silwer sal deur 'n onskuldige verdeel word. Sy huis is gebou soos dié van 'n mot, soos 'n takskerm wat 'n wag opgerig het. Hy gaan skatryk lê, maar hy sal dit nie weer kan doen nie; hy hou sy oë oop, maar hy is nie meer daar nie. Soos vloedwaters oorval verskrikkinge hom; snags voer 'n stormwind hom mee; die oostewind lig hom op, en daar gaan hy! Dit voer hom weg uit sy woonplek, genadeloos gooi dit hom neer; halsoorkop vlug hy vir die geweld daarvan. Bo hom klap die wind spottend hande, en sis vir hom, uit sy woonplek.” Daar is 'n plek waar silwer vandaan kom, 'n plek vir goud, waar dit uitgewas word. Yster word uit delfstof verkry, en erts word gesmelt tot koper. Die mens maak 'n einde aan die donker; tot die verste uithoeke bly hy soek na gesteentes in die donker, in stikdonkerte. Ver van waar iemand woon, sink hulle 'n skag. Vergete deur voetgangers hang hulle daar; weg van sterflinge swaai hulle heen en weer. Die aarde – daaruit kom kos voort; sy ondergrond word omvergewerp asof deur vuur. Sy gesteentes is 'n plek van •lasuursteen, en daar is goudstof in. Dit is 'n pad wat roofvoëls nie ken nie; die oog van valke bespeur dit nie. Trotse wilde diere betree dit nie; die maanhaar loop nie daarop nie. Die mens slaan sy hand selfs aan klipharde rots; hy keer berge van hulle wortels af om. In die rotse breek hy myngange oop, en sy oë sien al die kosbaarhede. Hy stop waterare toe; wat verborge is, bring hy na die lig. Maar wysheid – waar word dit gevind, en waar is die plek van insig? 'n Sterflike mens ken nie die waarde daarvan nie, en in die land van die lewendes word dit nie gevind nie. Die diep waters sê: “In my is dit nie!” en die see sê: “Nie by my nie!” Suiwer goud kan nie daarvoor aangebied word nie, en silwer kan nie as koopprys daarvoor afgeweeg word nie. Met goud uit Ofir kan nie daarvoor betaal word nie, nie met kosbare •oniks of •lasuursteen nie. Goud en glas kan nie daarmee vergelyk word nie, en artikels uit fyngoud het nie ruilwaarde daarvoor nie. Pêrels en rotskristal word nie eers oorweeg nie; 'n sakkie wysheid is meer werd as korale. •Topaas uit Kus kan nie daarmee vergelyk word nie, met suiwer goud kan nie daarvoor betaal word nie. Maar wysheid – waar kom dit vandaan, en waar is die plek van insig? Dit is verborge vir die oë van alles wat leef, vir die voëls van die hemel is dit weggesteek. Die onderwêreld en die dood sê: “Net met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.” God het insig in die pad daarheen, Hy ken die plek daarvan. Want net Hy kyk tot by die eindes van die aarde; Hy sien alles onder die hemel, sodat Hy die gewig van die wind kan bepaal, en die hoeveelheid water kan vasstel. Toe Hy vir die reën vaste reëls neergelê het, 'n pad vir die harde donderslae, toe het Hy ook die wysheid gesien, en daarvan vertel; Hy het daaraan 'n vaste plek gegee, en dit ook deurgrond. Maar vir die mens het Hy gesê: “Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.” Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê: “As dit maar met my kon gaan soos in vroeër maande, soos in die dae toe God my bewaar het; toe Hy sy lamp bo my kop laat skyn het, toe ek by sy lig in die donker geloop het; soos toe ek my beste dae beleef het, toe God 'n beskutting bo my tent was; toe die Almagtige nog by my was, en my kinders rondom my; toe ek my voete in dikmelk kon afspoel, en klipperige grond strome olie vir my laat vloei het. Wanneer ek uitgegaan het na die poort, na die stad, en in die oop ruimte my sitplek reggeskuif het, het jong manne my gesien en opsy gestaan, het ou manne regop gekom en bly staan. •Hoë amptenare het hulle woorde teruggehou, hulle hande voor hulle monde geplaas; die stemme van •leiers het stil geraak, hulle tonge het aan hulle verhemeltes gekleef. Ja, elke oor wat kon hoor, het my gelukkig genoem, en elke oog wat kon sien, het instemmend vir my geknik. Want ek het magteloses wat om hulp geroep het, bevry, ook vaderlose kinders wat nie 'n helper het nie. Die seënspreuk van 'n sukkelaar het ek ontvang; die harte van weduwees het ek laat jubel. Ek het my met wat reg is, beklee, dit het my klere geword; my regverdige optrede was soos 'n mantel en 'n •tulband. Ek was oë vir blindes, en ek was voete vir lammes. Ek was 'n vader vir behoeftiges; die regsaak van mense wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek, sodat ek die kake van 'n boosdoener kon breek, en prooi uit sy tande kon wegruk. “Ek het gedink, in my eie nes sal ek sterf, en my lewensdae sal soos sand vermeerder; my wortels sal strek tot by die water, en die dou sal oornag op my takke. Ek sal nuwe aansien bly geniet; my boog in my hand sal vernuwe word. “Na my het hulle vol verwagting geluister; hulle het stilgebly om my raad te hoor. En ná my uitspraak het hulle nie weer gepraat nie; my verduideliking was soos druppels water op hulle. Hulle het op my gewag soos op reën, hulle monde wyd oop vir die laatreëns. Ek het vir hulle geglimlag wanneer hulle dit skaars kon glo; my stralende gesig kon hulle nie stroef maak nie. Ek het namens hulle die pad gekies en as leier my plek ingeneem; ek was tuis onder hulle soos 'n koning by sy troepe, soos iemand wat treurendes vertroos. Maar nou lag hulle my uit, hulle wat in lewensdae jonger is as ek, hulle wie se pa's ek te onwaardig geag het om hulle by die honde van my kleinvee toe te laat. Boonop, wat sou die krag van hulle hande my baat, as hulle lewenskrag daarmee heen is? Deur gebrek en honger weggeteer, is hulle mense wat die dor land, die wildernis en woesteny die vorige nag nog kaalgestroop het, hulle wat die souterige blare van struike pluk; die wortels van witbesembosse is hulle brood. Uit die gemeenskap is hulle verdryf, op hulle word geskree asof hulle diewe is. In die walle van spruite moet hulle woon, in gate in die grond en rotse. Tussen die struikgewas bulk hulle, onder brandnetels bondel hulle saam. As dwase, ja, naamlose mense, word hulle uit die land verjaag. “ En nou het ek hulle spotlied geword; ek het vir hulle 'n spreuk geword. Hulle vind my afstootlik; hulle bly ver van my af, maar aarsel nie om my in my gesig te spoeg nie. “ Omdat God my boogsnaar losgemaak en my verneder het, het hulle vrye teuels in my teenwoordigheid. Aan my regterkant maak die jong gespuis gereed; hulle dwing my in 'n rigting, hulle vul hulle beleëringswalle teen my op. Hulle breek my pad op, en trek voordeel uit my vernietiging; hulle sê, ‘Hy het nie 'n helper nie.’ Asof deur 'n breë bres kom hulle aan; onder 'n donderstorm kom hulle aangerol. Verskrikkinge word op my losgelaat; asof deur 'n windvlaag word my waardigheid verdryf, soos 'n wolk gaan my redding verby. Daarom stort my siel hom uit in my; dae van terneergedruktheid pak my beet. Die nag grawe my gebeente uit my uit, my knaende pyne kom nie tot rus nie. Met geweldige krag gryp Hy my bokleed; soos die opening in my kleed wurg Hy my. Hy het my in die modder gegooi; ek het soos stof en as geword. “Ek roep na U, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U kyk net na my. U het wreed geword teenoor my; met u magtige hand behandel U my soos 'n vyand. U tel my op die wind en laat my wegdryf; die stormwind waai my uitmekaar. Ja, ek weet, na die dood laat U my omdraai, die ontmoetingsplek vir almal wat leef. Mens lig tog nie 'n hand teen 'n puinhoop as hy in sy rampspoed om hulp roep nie? Het ek nie gehuil oor dié wat moeilike tye beleef nie? Was my hart nie treurig oor behoeftiges nie? Ja, op die goeie het ek gehoop, maar die slegte het gekom; op lig het ek gewag, maar donker het gekom. My binneste is in beroering, dit kom nie tot rus nie; dae van terneergedruktheid sak op my toe. Met 'n donker gelaat loop ek rond, maar nie as gevolg van hitte nie; ek staan in die byeenkoms op en roep aanhoudend om hulp. 'n Broer van jakkalse het ek geword, 'n vriend van steenuile. My vel het swart geword en dop af, my gebeente gloei van koors. My lier het 'n rouklag geword, my fluit die stem van huilendes. “ Ek het 'n verbond met my oë gesluit – hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie? Watter erfdeel is daar van God daar bo, watter erfenis van die Almagtige in die hoogtes? Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener, en rampe vir wie onreg pleeg nie? Sien Hy dan nie my paaie nie; en al my treë, tel Hy dit nie? As ek vals sou optree, en my voete hulle na bedrog haas – laat God my dan weeg op 'n onvervalste skaal, sodat Hy van my onberispelike optrede kan kennis neem. As my voetstappe sou afwyk van die pad, as my hart my oë gevolg het, en daar aan my handpalms 'n smet gekleef het, laat ek dan maar saai en laat 'n ander dit eet, laat wat vir my uitspruit, ontwortel word. As my hart hom laat verlei het by 'n vrou, ek by die deur van my medemens op loer was, laat my vrou dan vir iemand anders meel maal; laat ander mans oor haar buig. Want dit is 'n skanddaad, dit is strafbare sondeskuld; ja, dit is 'n vuur wat tot in die onderwêreld verteer; dit sou my hele oes ontwortel. As ek die regte van my slaaf en slavin misken het in hulle geskil met my, wat sal ek dan doen as God opstaan? En as Hy my tot verantwoording roep, wat sal ek antwoord? Het Hy, wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Een ons nie in die baarmoeder voorberei nie? As ek armes dit wat hulle begeer, ontsê het, die oë van 'n weduwee laat verdof het, my stukkie brood alleen geëet het, en as vaderlose kinders nie daarvan geëet het nie – van my jeug af het hulle immers by my grootgeword soos by 'n vader, en van die moederskoot af het ek weduwees gelei – as ek 'n sukkelaar sou sien sonder 'n bokleed, of 'n behoeftige sonder enige bedekking, as sy lyf nie dankbaar sou wees teenoor my, hy hom nie met die skeersel van my jongskaap sou warm maak nie, as ek my hand teen 'n vaderlose kind gelig het, omdat ek in die stadspoort gemerk het dat ek ondersteuning geniet, kan my bo-arm maar uit die skouer val, my voorarm maar uit die elmboog gebreek word. Want die teenspoed wat van God kom, is vir my 'n verskrikking; teen sy majesteit is ek nie opgewasse nie. As ek my vertroue gestel het in goud, vir fyngoud gesê het, ‘My veilige toevlug!’ as ek my verbly het oor my groot rykdom, ja, omdat my hande geweldig baie bereik het; as ek na die son gekyk het hoe dit skyn, en na die maan wat met grootsheid beweeg, sodat my hart in die geheim verlei is, en my hand na my mond gebring is vir 'n soen, sou dit ook 'n strafbare sondeskuld wees, omdat ek God daarbo sou verloën. As ek my verheug het oor die rampspoed van die een wat my haat, of uitbundig was toe die ellende hom getref het, het ek nie my mond toegelaat om sonde te doen deur sy lewe te eis met 'n vervloeking nie. As die manne van my huishouding darem nie gesê het nie, ‘Wie kan iemand uitwys wat nie van sy vleiskos versadig is nie?’! 'n •Vreemdeling sou nie buite oornag nie; my deure na die pad toe het ek altyd oopgehou. As ek, soos ander mense, my oortredinge verberg het deur my sondeskuld in my binnesak weg te steek, omdat ek bang was vir 'n groot menigte, en die minagting van familiegroepe my afgeskrik het, dan sou ek swyg, sou ek nie by die deur uitgaan nie. “ As daar maar iemand was wat na my luister! Hier is my teken. Die Almagtige moet my antwoord! As daar maar 'n klagskrif was wat my teenstander geskryf het, sou ek dit beslis op my skouer gedra het, as 'n kosbare hoofband sou ek dit vir my ombind. Ek sou die getal van my treë aan Hom voorhou, soos aan 'n •leier sou ek dit aan Hom voorlê. As my grond teen my om hulp geroep het, die ploegvore saam getreur het, as ek die opbrengs daarvan geniet het sonder betaling, en as ek die bewerkers daarvan laat kreun het, laat daar dan in die plek van koring sydissels uitspruit, in die plek van gars, broodblom. ” Hier eindig die woorde van Job. Die drie manne het toe opgehou om op Job te reageer, want in sy eie oë was hy regverdig. Maar Elihu, seun van Barakel, uit Bus, uit die grootfamilie van Ram, het kwaad geword. Hy was kwaad vir Job omdat hy homself verontskuldig het teenoor God. Elihu was kwaad vir sy drie vriende omdat hulle nie antwoorde kon vind nie, maar Job tog skuldig verklaar het. Elihu het sy woorde teen Job teruggehou, omdat hulle ouer as hy was. Toe Elihu egter sien dat daar geen antwoord kom uit die mond van die drie manne nie, het hy kwaad geword. Elihu, seun van Barakel, uit Bus, het toe gereageer en gesê: “Ek is jonk, en julle is oud; daarom was ek beskroomd en bang om my kennis met julle te deel. Ek het gedink, die jare moet praat, die baie lewensjare moet wysheid openbaar. Maar dit is die gees in sterflinge en die asem van die Almagtige wat aan hulle insig gee. Dit is nie noodwendig dié wat ryp in jare is wat wys is, en oumense wat insig het in wat reg is nie. Daarom sê ek, ‘Luister na my! Ook ek wil my kennis deel.’ “Kyk, ek het op julle woorde gewag; ek het geluister na julle insig, terwyl julle na woorde soek. My aandag was net by julle. Maar kyk, niemand kon Job teregwys nie, niemand onder julle kon op sy woorde antwoord nie. Julle moet nou net nie sê, ‘Ons het wysheid teëgekom. Net God kan van hom ontslae raak, nie 'n mens nie.’ Hy het nie argumente teen my aangevoer nie; met julle woorde sal ek hom nie antwoord nie. “Hulle is skoon verskrik, hulle antwoord nie meer nie; woorde ontwyk hulle. Sou ek dan wag as hulle nie praat nie, as hulle maar net daar staan, nie meer antwoord nie? Ook ek sal op my beurt 'n antwoord gee, ook ek sal my kennis deel. Want ek is vol woorde, die gees in my binneste dwing my. Kyk, my binneste is soos wanneer wyn nie oopgemaak word nie; soos nuwe leersakke wil dit oopbars. Ek moet praat en verligting kry, my mond oopmaak en reageer. Ek mag vir niemand partydig wees nie, en ek sal mense nie vlei nie, want ek weet nie hoe om te vlei nie; my Maker sou my gou verwyder. Maar luister tog na my argumente, Job! Hoor al my woorde! Kyk, ek het my mond oopgemaak, die woorde lê op my tong. Uit 'n opregte hart kom my woorde; en wat my lippe weet, deel hulle suiwer mee. Die Gees van God het my gemaak; die asem van die Almagtige hou my lewend. As jy kan, antwoord my! Sit die saak voor my uiteen; neem standpunt in! Kyk, voor God is ek net soos jy; ook ek is van klei afgeknyp. Ja, vrees vir my hoef jou nie te ontstel nie, my hand sal nie swaar op jou rus nie. “ Jy het beslis voor my ore gesê – en die klank van die woorde hoor ek steeds – ‘Ek is rein, sonder 'n oortreding; ek is skoon; sondeskuld het ek nie. Kyk, God vind redes om my teen te staan, Hy beskou my as 'n vyand van Hom. Hy sit my voete in die blok; Hy hou al my bewegings dop.’ Kyk, hierin het jy nie gelyk nie – so antwoord ek jou – want God is groter as 'n sterfling. Waarom voer jy met Hom 'n twisgesprek, as Hy Hom nie verweer oor al sy dade nie? Want God praat op een, ja, op twee maniere, maar die mens sien dit nie raak nie. In 'n droom, in 'n naggesig, wanneer 'n diep slaap mense oorval, en hulle insluimer op hulle beddens, dan open Hy die ore van mense, en bevestig Hy die vermanings aan hulle – om mense te laat afsien van wat hulle doen, en 'n man van hoogmoed te vrywaar, om hom weg te hou van die grafkuil, sy lewe daarvan te weerhou om die rivier oor te steek. Of hy word met pyn op sy bed tereggewys – 'n voortdurende stryd in sy gebeente, sodat sy lewe walg van kos, en hy self van begeerlike voedsel. Sy liggaam teer weg, raak onaansienlik; sy gebeente, wat onsigbaar was, word ontbloot. Hy beweeg self nader aan die grafkuil, sy lewe beweeg nader aan hulle wat die dood bring. As daar by hom 'n engel is, 'n voorspraak, een van die duisende, om vir die mens oor sy opregtheid te getuig, en dié hom genadig is en sê, ‘Bevry hom daarvan om na die grafkuil af te daal, ek het 'n losprys vir hom gekry,’ word sy liggaam lewenskragtiger as dié van 'n jong man, keer hy terug na die dae van sy jeug. Wanneer hy by God pleit, aanvaar Hy hom; hy ervaar God se teenwoordigheid met 'n uitroep van vreugde, en God herstel die sterfling se geregtigheid. So iemand kyk na mense en sê: ‘Ek het gesondig en die reg verdraai, maar daar is nie met my afgereken nie. God het my vrygekoop van die oorgang na die grafkuil; en my lewe mag hom in die lig verlustig.’ “Kyk, al hierdie dinge doen God selfs twee of drie maal met 'n man, om hom van die grafkuil weg te keer, en die lig van die lewe te laat skyn. Gee aandag, Job! Luister na my! Wees stil, en ek sal praat! As jy woorde het, antwoord my! Praat, want ek wil jou graag gelyk gee. Indien nie, luister jy dan na my! Wees stil, en ek sal jou wysheid leer.” Elihu het toe voortgegaan en gesê: “Luister na my woorde, wyses! Kenners, hoor my aan! Die oor toets immers woorde soos die tong kos proe. Wat reg is – laat ons dit vir onsself uitmaak; laat ons onder mekaar kennis neem van wat goed is. Want Job het gesê, ‘Ek het gelyk; God het my my reg ontneem. Sal ek lieg teen my regte in? Ongeneeslik is my pylwond – sonder dat ek 'n oortreding begaan het.’ Wie is daar nog soos Job wat 'n gespot soos water drink, hom in die geselskap bevind van dié wat onreg pleeg en wat saamloop met goddelose manne? Hy het immers gesê, ‘Dit baat 'n man nie as hy 'n goeie verhouding met God het nie.’ “ Daarom, verstandige manne, luister na my: God sal nooit ooit goddeloos optree nie, of die Almagtige ooit onreg pleeg nie. Ja, Hy vergeld 'n mens sy dade; volgens sy gedrag laat Hy hom dit ervaar. Boonop staan dit vas: God maak Hom aan niks skuldig nie; die Almagtige verdraai nie die reg nie. Wie het die aarde aan Hom toevertrou? Wie het die hele wêreld daargestel? As Hy net aan Homself sou aandag gee, sy Gees en asem by Homself sou hou, sal alles wat leef, saam tot niet gaan, en die mens tot stof terugkeer. “As daar dan by jou insig is, luister hierna; neem kennis van die bedoeling van my woorde! Kan iemand wat die reg haat, hoegenaamd regeer? Of kan jy die Regverdige, die Magtige, skuldig verklaar, Hy wat vir 'n koning sê, ‘Booswig!’ vir vooraanstaandes, ‘Goddeloses!’ Hy wat nie partydig is vir bevelvoerders nie, wat nie aan vooraanstaande mense voorkeur gee bo armes nie, omdat hulle almal die werk van sy hande is? Binne 'n oomblik sterf hulle in die middel van die nag. Mense word geskud en gaan heen. Magtiges word sonder menslike ingryping verwyder. Want God se oë is gerig op die mens se paaie; al sy treë hou Hy dop. Daar is geen donker, geen pikdonkerte, waar hulle wat onreg pleeg, kan wegkruip nie. Dit berus immers nie by 'n mens om 'n vaste tyd te bepaal om na God te gaan met 'n regsaak nie. God verpletter magtiges sonder 'n ondersoek, Hy plaas ander in hulle plek. Daarom is Hy vertroud met hulle dade; Hy werp hulle oornag omver, sodat hulle verpletter daar lê. Daar waar die goddeloses is, tref Hy hulle, op 'n plek waar mense dit kan sien – omdat hulle agter Hom wegdraai en nie ag slaan op al sy paaie nie – sodat die hulpgeroep van armes Hom kan bereik, en Hy die noodkreet van magteloses kan hoor. As Hy stil is, wie kan veroordeel? As Hy sy gesig verberg, wie kan Hom sien? Maar oor 'n nasie sowel as oor die mensdom het Hy beheer, sodat iemand wat 'n godlose is, nie sal regeer nie, en daar nie vangstrikke vir die volk sal wees nie. As iemand vir God sou sê, ‘Ek het skuld op my gelaai, ek sal my nie meer sleg gedra nie; leer U my wat ek nie raaksien nie,’ of ‘as ek onreg gepleeg het, ek sal dit nie weer doen nie,’ dink jy dan dat God hom moet vergeld, omdat jy hom verwerp het? Jy is immers die een wat moet kies, nie ek nie. Wat jy weet, sê dit! Verstandige manne, ja, 'n wyse man wat na my luister, sal vir my sê, ‘Job is die een wat sonder kennis praat; sy woorde is sonder insig. Mag Job tot die uiterste getoets word, omdat hy antwoord soos misdadigers; want hy voeg oortreding by sy sonde; onder ons saai hy twyfel. Hy stapel sy woorde teen God op.’ ” Elihu het toe voortgegaan en gesê: “Dink jy dit is reg as jy sê, ‘Ek, eerder as God, het gelyk!’? Ja, jy sê, ‘Watter nut het dit vir U? Wat baat dit my as ek nie sondig nie?’ Ek sal jou daarop antwoord, jou en jou vriende. Kyk na die hemel en sien! Aanskou die wolkehemel! Dit is hoër as jy. As jy sondig, wat doen dit aan Hom? As jou oortredinge baie is, wat veroorsaak jy vir Hom? As jy regverdig is, wat gee jy vir Hom, of wat ontvang Hy uit jou hand? Jou oortreding raak net 'n mens soos jy, jou regverdigheid net 'n mensekind. “ Omdat daar soveel verdrukking is, roep mense om hulp; aanhoudend roep hulle oor die krag van magtiges, maar wat hulle nie sê nie, is, ‘Waar is God, my Maker, Hy wat lofsange gee in die nag, Hy wat ons onderrig, meer as die diere van die aarde, en ons slim maak, meer as die voëls van die hemel?’ Dan roep hulle om hulp oor die hoogmoed van slegte mense, maar Hy antwoord nie. Na 'n leë geroep luister God egter nie; die Almagtige slaan nie daarop ag nie. Hoeveel minder nog wanneer jy sê dat jy Hom nie sien nie, dat die regsaak voor Hom is, maar dat jy steeds op Hom wag? Maar nou, omdat sy toorn nie verantwoording eis nie, en Hy nie veel ag slaan op oortreding nie, het Job sy mond vol onsin, vermeerder hy woorde sonder kennis.” Elihu het voortgegaan en gesê: “Wees nog 'n rukkie geduldig met my, sodat ek jou kan onderrig. Want daar is nog meer te sê oor God. Ek sal my kennis ver gaan haal, en ek sal erkenning gee aan die geregtigheid van my Maker. Ja, dit staan vas: My woorde is nie leuens nie; iemand met volmaakte kennis is hier by jou. Kyk, God is magtig, maar Hy verwerp niemand nie – magtig, met 'n hart wat sterk is. Hy hou goddeloses nie aan die lewe nie, maar die reg van magteloses handhaaf Hy. Hy wend van regverdiges sy oë nie af nie, maar saam met konings laat Hy hulle vir altyd op die troon sit, sodat hulle verhewe is. “En as mense met kettings geboei is, gevange geneem is met toue van verdrukking, dan hou Hy hulle dade aan hulle voor, ook hulle oortredinge – dat hulle hulle magtig voorgedoen het. Hy maak hulle ore oop vir teregwysing, en gee opdrag dat hulle moet wegdraai van onreg. As hulle gehoorsaam is en Hom dien, sal hulle hulle dae afsluit in voorspoed, hulle lewensjare met wat aangenaam is. Maar as hulle nie luister nie, sal hulle die rivier oorsteek, en sal hulle sterf asof sonder enige kennis. Hulle wat oortuigde godloses is, hoop toorn op; hulle roep nie aanhoudend om hulp nie, selfs al boei Hy hulle. Hulle lewens kom op 'n jong ouderdom tot 'n einde – hulle lewens by manlike tempelprostitute. Hy red magteloses deur hulle verdrukking; Hy maak deur beproewing hulle ore oop. “ Meer nog, Hy het jou weggelok uit die kake van benoudheid; 'n onbeperkte ruimte is in die plek daarvan – die rustigheid van jou tafel vol ryk kos. Jy is vol oordeel oor goddeloses; oordeel en vonnis is jou voorland. Ja, pasop dat jy nie deur oorvloed mislei word nie; die grootte van 'n omkoopgeskenk moet jou nie verlei nie. Sal jou rykdom en al die inspanning van jou kragte vir jou 'n front vorm, sodat jy nie in nood verkeer nie? Moenie smag na die nag, om mense uit hulle blyplek te verwyder nie. Pasop! Moet jou nie tot onreg wend nie; want dit is die rede waarom jy deur verdrukking getoets word. Kyk, God is verhewe deur sy krag. Wie is 'n leermeester soos Hy? Wie het Hom al tot verantwoording geroep oor sy optrede? Wie het al gesê, ‘U het onreg gepleeg!’? “Onthou dat jy sy werk, wat deur mense besing word, moet verheerlik. Die hele mensdom aanskou dit met vreugde; sterflinge kyk van ver af daarna. Kyk, God is verhewe – ons kan dit nie eers bedink nie; die getal van sy jare – dit kan nie nagespeur word nie. Want Hy trek druppels water op; dit word vir sy ondergrondse rivier oorgeskink tot reënwater wat die wolke uitstort, wat hulle oorvloedig laat drup op die mense. Verder, verstaan mens die uitbult van 'n wolkbank, die donderslae uit die hut van God? Kyk, Hy sprei sy weerlig oor die wolkbank uit; die wortels van die see bedek Hy. Ja, daarmee oordeel Hy volke; so gee Hy ook kos in oorvloed. Albei sy hande is vol weerlig, en Hy beveel dit om die teiken te tref. Sy donderende stem kondig die storm aan, ook die vee vertel dat dit nader kom. Ja, hieroor bewe my hart, klop dit in my keel. Luister goed na die gerammel van sy stem; die dreuning wat uit sy mond kom. Oral onder die hemelruim laat Hy dit vry, ook sy weerlig oor die uithoeke van die aarde. Daarna brul sy stem; Hy laat dit dreun met sy luisterryke stem. Hy hou die weerligstrale nie terug wanneer sy stem gehoor word nie; God laat dit wonderbaarlik dreun met sy stem, Hy doen groot dinge, en ons kan dit nie deurdink nie. Ja, aan die sneeu gee Hy die opdrag, ‘Val op die aarde!’ ook aan die stortreën, die stortbuie wat sy krag toon. Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken. Wilde diere gaan in hulle skuilplekke in, in hulle lêplekke bly hulle. Uit die kamer agter die horison kom stormwinde; drywende winde bring die koue. Die asem van God maak ys; die uitgestrekte waters vries vas, asof gegiet. Ja, Hy belaai die wolke met 'n oorvloed vog; die wolkbank versprei sy weerlig. Die wolke beweeg oral rond, gaan heen en weer volgens sy beskikking, om op die oppervlakte van die aarde alles te doen wat Hy beveel. Of dit nou is om te straf, of tot voordeel van sy grond, of om liefde te bewys, Hy laat hulle die doel bereik. “Luister hierna Job! Staan stil en gee aandag aan God se wonders. Hy laat die weerlig in sy wolkbank flits. Begryp jy dit wanneer God vir hulle reëls neerlê? Begryp jy iets van die wegdryf van wolke – wonderwerke van Een met volmaakte kennis? Jy, wie se klere te warm is wanneer die aarde stil raak uit die suide, kan jy saam met Hom 'n wolkemassa plet, so solied soos 'n spieël van gegote koper? “Maak aan ons bekend wat ons vir Hom moet sê! Ons kan nie die saak uiteensit nie, weens die duisternis. Sal dit aan Hom vertel word dat ek praat; of sê iemand, ‘Dit moet aan God meegedeel word’? “Maar nou – mens sien nie weerlig, dit wat helder in die wolkemassa was nie. Die wind het verbygekom en dit opgeruim. Uit 'n goue noorde kom Hy; by God is die majesteit ontsagwekkend. Die Almagtige – ons kan Hom nie bereik nie, Hy wat verhewe is in krag. Die reg en volle geregtigheid sal Hy nooit geweld aandoen nie. Hierom koester mense ontsag vir Hom: Hy gee nie voorkeur aan enige van die wyses van hart nie. ” Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê: “ Wie is hierdie een wat 'n plan vertroebel met woorde sonder kennis? Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in! Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het! Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het 'n maatband daaroor gespan? Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het? Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het, toe Ek wolke sy bokleed gemaak, en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het, toe Ek my grens bo hom oopgebreek het, en 'n sluitbalk en dubbeldeure in plek geplaas het, en toe Ek gesê het, ‘Tot hier mag jy kom, maar nie verder nie; hier word my grens geplaas teen jou trotse golwe! ’? “ Het jy op enige van jou lewensdae 'n opdrag aan die oggend gegee, vir die rooidag sy plek aangewys deur die some van die aarde vas te vat, sodat goddeloses daarvan afgeskud word? Die aarde verander soos klei onder 'n rolseël, sodat alles vorm kry soos 'n bokleed. Goddeloses word van hulle lig ontneem, en 'n opgehefde voorarm word gebreek. “Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop? Is die poorte van die dood vir jou blootgelê, en die poorte van die pikdonkerte – het jy dit gesien? Het jy al ag geslaan op die uitgestrektheid van die aarde? Vertel, as jy dit alles weet! Waar is die pad na waar die lig woon; en die donker, waar is sy plek, dat jy hom na sy gebied kan neem, en die paaie na sy tuiste onderskei? Jy moet dit weet, want jy was toe al gebore, en die getal van jou lewensdae is baie! “ Het jy al in die voorraadkamers van die sneeu ingegaan, en die voorraadkamers van die hael – het jy dit al gesien, dit wat Ek gereedhou vir 'n tyd van angs, vir die dag van stryd en oorlog? Waar is die pad na waar die weerlig verdeel word, na waar die oostewind dit oor die aarde versprei? Wie het vir die vloedwaters 'n voor oopgekloof, 'n pad vir die harde donderslae, om dit te laat reën op 'n land sonder mense, op 'n woestyn waarin daar geen mens is nie, om so die wildernis en woesteny te versadig, en groen grasspriete te laat uitspruit? Het die reën 'n vader, of wie het geboorte gegee aan die doudruppels? Uit wie se moederskoot het die ys te voorskyn gekom, en die ysryp uit die hemel – wie het daaraan geboorte gegee, wanneer water asof in klip skuilgaan, en die oppervlakte van die diep waters dig sluit? “ Kan jy die koorde van die Sewester knoop, of die bande van Orion losmaak? Kan jy 'n sterrebeeld uitlei op sy tyd, die Beer met haar kleintjies begelei? Ken jy die wette van die hemelruim, kan jy die invloed daarvan op die aarde vasstel? Kan jy jou stem na die wolke rig, sodat 'n watervloed jou bedek? Kan jy weerligte vrylaat, sodat hulle gaan en vir jou sê, ‘Hier is ons!’? Wie plaas wysheid in die wit wolke, of wie gee insig aan die wolke wat wegdryf? Wie kan met wysheid die wolkemassa aftel, en die waterkruike van die hemel – wie keer hulle om, wanneer die grond soos gegote metaal verhard, en die kluite saamklont? “Kan jy vir 'n leeuwyfie prooi jag, die honger van jong leeus bevredig wanneer hulle in lêplekke hurk, onder 'n blaredak gereed sit vir die hinderlaag? Wie voorsien aan die kraai sy kos wanneer sy kuikens aanhoudend na God roep, ronddwaal sonder kos? “Ken jy die tyd wanneer klipbokke lam? Het jy dit al aanskou wanneer rooitakbokooie lammers voortbring? Tel jy die maande wat hulle dragtig is; ken jy die tyd wanneer hulle lam? Hulle hurk en bring hulle lammers voort; hulle laat hulle ongebore nageslag vry. Hulle lammers word sterk, groei op in die oop veld, gaan weg en kom nie weer na hulle terug nie. “ Wie het die wildedonkie vry laat rondloop? Die stroppe van die wilde-esel, wie het dit losgemaak, die een vir wie Ek die Araba as sy tuiste bestem het, en brak grond as sy verblyfplekke? Hy lag vir die rumoer van die stad; die geskreeu van 'n drywer hoor hy nie. Hy verken die berge vir weiding; hy soek alles wat groen is. “Sal die buffel instem om vir jou te werk, of sal hy by jou voerkrip oornag? Kan jy 'n buffel bind aan 'n ploegvoor met sy leiriem, of sal hy die leegtes wat agter jou lê, eg? Kan jy hom vertrou, terwyl sy krag so groot is, of aan hom jou swaar verdiende oes oorlaat? Vertrou jy hom dat hy sal terugkom met jou graan, en dit op jou dorsvloer sal bymekaarmaak? “ Die vlerke van 'n volstruiswyfie klap uitgelate. Is die penvere van haar vlerke dié van 'n ooievaar of kleinvalk? Want sy los haar eiers op die grond, en in die stof hou sy dit warm. Sy vergeet dat 'n voet dit kan stukkend trap, dat 'n wilde dier dit kan breek. Sy behandel haar kuikens sleg, asof hulle nie haar eie is nie; oor haar vergeefse moeite, is sy nie ontsteld nie. Want God het haar van wysheid laat vergeet, haar nie met insig bedeel nie. Maar sodra sy opspring, lag sy vir die perd en sy ruiter. “Gee jy vir die perd krag, klee jy sy nek met maanhare? Laat jy hom tril soos treksprinkane? Sy trotse geproes is 'n verskrikking. Hy kap die grond met geweld en is opgewonde oor sy krag. Hy gaan uit, die stryd tegemoet. Hy lag vir vrees en raak nie verskrik nie; hy draai nie om vir die swaard nie. Langs hom ratel die pylkoker, die lem van 'n vegspies en 'n kromswaard. Onstuimig jaag hy met 'n gedruis 'n stuk aarde af; hy staan nie stil wanneer die •ramshoring opklink nie. Met elke skal van die ramshoring sê hy, ‘Aha!’ en van ver af ruik hy die geveg – die gebulder van bevelvoerders en die krygsgeskreeu. “ Is dit aan jou insig te danke dat die kleinvalk sweef, sy vlerke in die suidewind oopsprei? Of is dit op jou bevel dat die arend so hoog opstyg, en sy nes so hoog bou? 'n Rots bewoon hy, en hy bring die nag daar deur – op 'n rotspunt en 'n bergvesting. Van daar is hy op die uitkyk vir kos, in die verte tuur sy oë. Sy kuikens slurp bloed op, waar gesneuweldes is, daar is hy.” Die Here het Job geantwoord en gesê: “ Wil die een wat vermaan, met die Almagtige 'n regstryd voer? Laat hy wat God wil teregwys, hierop antwoord.” Job het die Here geantwoord; hy het gesê: “ Kyk, ek is te onbelangrik – wat sou ek U antwoord? My hand lê ek op my mond. Een keer het ek gepraat, maar ek sal nie weer reageer nie – ook 'n tweede keer, maar ek sal nie weer nie.” Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê: “ Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in! Wil jy werklik my beslissings dwarsboom, My skuldig verklaar, sodat jy gelyk kan hê? Of het jy 'n arm soos dié van God? Kan jy soos Hy jou stem laat donder? Tooi jou dan met majesteit en aansien; klee jou met luister en glans. Laat jou woedebuie oral uitbars; sien elkeen raak wat verwaand is en verneder hom. Sien elkeen raak wat verwaand is en dwing hom op sy knieë. Vertrap goddeloses net daar waar hulle is. Verberg hulle saam in die stof. Hou hulle gevange in die verborgene. Selfs Ek sal jou dan prys, omdat jou regterhand jou te hulp gekom het. “Kyk na Behemoot, wat Ek gemaak het, soos Ek jou ook gemaak het. Hy eet gras soos 'n bees. Kyk na die krag in sy kruis. En sy manlike krag, dit is in die spiere van sy buik. Hy maak sy stert styf soos 'n seder, die senings van sy dye is ineengevleg. Sy gebeente is bronspype, sy bene soos ysterstawe. Hy is die voortreflikste van God se werke; Hy wat hom gemaak het, het sy swaarde verskaf. Ja, die opbrengs van die berge word na hom aangedra, daar waar al die diere van die veld baljaar. Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. Lotusbome bedek hom met skaduwee; rivierwilgers omring hom. Kyk, die rivier kan maar afkom, hy gee nie haastig pad nie; hy bly rustig, al stu die Jordaan teen sy bek. Sal iemand hom aan sy oë beetpak, met stokke sy neus deurboor? “Kan jy 'n leviatan aan 'n hoek intrek, met 'n tou sy tong onder bedwang bring? Kan jy 'n biesie deur sy neus sit, met 'n doring sy wang deurboor? Sal hy baie smeekbedes tot jou rig, of saggies met jou praat? Sal hy 'n ooreenkoms met jou sluit, dat jy hom as lewenslange slaaf neem? Kan jy met hom speel soos met 'n voël, hom vasbind vir jou dogters? Sal handelsvennote oor hom onderhandel, hom tussen handelaars verdeel? Kan jy sy vel vol harpoene steek, en sy kop vol visspiese? As jy jou hand op hom plaas, sal jy die geveg onthou; jy sal dit nie weer doen nie. Kyk, enige verwagting om hom te vang, is misplaas. Sal selfs net sy voorkoms nie 'n mens laat neerslaan nie? Niemand is so roekeloos dat hy hom sal wakker maak nie. En wie is die een wat dan voor My sal standhou? Wie het al teen My standpunt ingeneem, sodat Ek hom moes vergoed? Alles onder die hemel behoort aan My. Ek sal nie swyg oor sy ledemate, oor die saak van geweldige krag en sy mooi vorm nie. Wie het al sy bokleed afgestroop? En sy dubbele pantser – wie dring daardeur? Die deure van sy gesig, met sy verskriklike tande reg rondom – wie het dit al oopgemaak? Sy rug het rye skilde, hulle sit styf teen mekaar, dig verseël. Die een so na aan die ander, nie eers lug kan daartussen deurbeweeg nie. Hulle kleef aan mekaar, sluit so dig dat hulle nie geskei kan word nie. Wanneer hy nies, flits daar ligte, sy oë is soos die ooglede van die dagbreek. Uit sy bek kom fakkelligte, vuurvonke spat daaruit; uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n aangeblaasde, gloeiende kookpot. Sy asem laat gloeiende kole vlam vat, 'n vlam kom uit sy bek. In sy nek setel sterkte, en voor hom uit dans krag. Die skubbe van sy lyf kleef aan mekaar, is aan hom gegiet – onbeweeglik. Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n onderste maalklip. Wanneer hy opkom, is magtiges vreesbevange, deins hulle terug vir die breek van die water. 'n Swaard wat hom wel bereik, hou nie stand nie, nie 'n spies, wapen of pylpunt nie. Yster is vir hom soos strooi, brons soos verrotte hout. 'n Pyl laat hom nie vlug nie, klippe uit 'n slingervel verander vir hom in strooi. 'n Knuppel is vir hom soos strooi, hy lag vir die suising van 'n kromswaard. Onder aan hom is die skerp punte van potskerwe; hy sleep 'n dorsslee oor die modder. Hy laat die diep waters soos 'n pot kook; die groot water maak hy soos 'n pot waarin salf berei word. Agter hom laat hy 'n glinsterende pad – mens sou dink die diep waters is grys hare. Op die grond bestaan sy gelyke nie, hy wat gemaak is om nie te vrees nie. Op al wat hoog is, sien hy neer; hy is koning oor al die trotse diere.” Job het die Here geantwoord; hy het gesê: “ Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie is die een wat 'n plan verberg, terwyl hy geen kennis het nie? Daarom het ek, sonder begrip, ja, sonder kennis, my mening gegee oor dinge wat vir my te wonderbaar is. Luister, en ek sal praat! U het gesê, ‘Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!’ Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek dit, en het ek berou – in stof en as.” Nadat die Here hierdie woorde vir Job gesê het, het die Here vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, gaan na my dienskneg Job, en bring ter wille van julleself 'n •brandoffer. My dienskneg Job moet vir julle bid, dat Ek julle nie iets onbehoorliks aandoen nie. Ek sal net teenoor hóm goedgesind wees, want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.” Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, het toe gegaan en gedoen wat die Here vir hulle gesê het, en die Here was Job goedgesind. Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die Here het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel. Al sy broers en susters en al sy vorige kennisse het na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet. Hulle het met hom meegevoel betuig en hom getroos oor al die onheil wat die Here oor hom laat kom het. Elkeen van hulle het vir hom een kesita en een goue ring gegee. Die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin. Hy het veertienduisend stuks kleinvee, sesduisend kamele, 'n duisend pare beeste en 'n duisend donkiemerries besit. Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. Job het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Happoeg. In die hele land kon daar nie vroue so mooi soos Job se dogters gevind word nie. Hulle vader het aan hulle 'n erfdeel saam met hulle broers gegee. Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank geleef. Hy het sy kinders en sy kinders se nageslag gesien – vier geslagte. Job het gesterf, oud en versadig van lewensdae. Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. So iemand sal wees soos 'n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy. So is die goddeloses nie; inteendeel, hulle is soos kaf wat die wind wegwaai. Daarom sal goddeloses nie kan opstaan tydens die regspraak, of sondaars in die byeenkoms van •regverdiges nie. Ja, die Here dra sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddeloses loop dood. Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies nuttelose planne? Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde: “Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle: “Ek self het my koning gesalf op Sion, my •heilige berg.” Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: “Jy is my seun, vandag het Ek jou verwek. Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. Jy sal hulle verpletter met 'n ystersepter, soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan.” Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing! Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil. 'n Psalm. Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Here, hoe het my teenstanders vermeerder! Baie staan teen my op. Baie sê van my: “Daar is geen redding vir hom by God nie.” Maar U, Here, is vir my 'n skild aan alle kante; U is my eer, en die Een wat my kop hoog hou. Wanneer ek hard roep na die Here, antwoord Hy my van sy •heilige berg af. Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my. Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my teen my stelling inneem nie. Staan op, Here, verlos my, my God, want U het al my vyande op die wang geslaan; die tande van die goddeloses het U gebreek. By die Here is daar redding; op u volk rus u seën. Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Psalm. Van Dawid. God wat my reg handhaaf, antwoord my wanneer ek roep. Toe ek in die noute was, het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed. Mense, hoe lank nog gaan julle my eer skend? Julle het nietigheid lief, julle jaag leuens na. Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep. Sidder, moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil. Bring offers van geregtigheid en vertrou op die Here. Baie mense sê: “Wie sal ons weer die goeie laat beleef?” Laat die lig van u teenwoordigheid oor ons skyn, Here! U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en •nuwe wyn volop is. In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon. Vir die •musiekleier. Met fluitspel. 'n Psalm. Van Dawid. Luister tog na my woorde, Here; hoor my versugting! Slaan ag op my noodkreet, my Koning en my God, want tot U bid ek! Here, in die oggend hoor U my stem, in die oggend lê ek my saak aan U voor, en wag. Ja, U is 'n God wat goddeloosheid nie duld nie; boosheid kan by U nie vertoef nie. Verwaande mense kan voor U oë nie staande bly nie; U het 'n weersin in almal wat onreg pleeg. U laat leuenaars ten gronde gaan; die Here verafsku mense wat bloed vergiet en bedrog pleeg. Maar ék mag op grond van u oorvloedige troue liefde na u huis kom; uit ontsag vir U buig ek in aanbidding na u •heilige •tempel. Lei my deur u geregtigheid, Here, omdat ek teenstanders het; maak u pad reguit voor my. Daar kom immers niks betroubaars uit hulle monde nie, hulle binneste huisves vernietiging, hulle kele is 'n oop graf, met hulle tonge vlei hulle. Laat hulle boet, o God, laat hulle deur hulle eie planne tot 'n val kom. Dryf hulle uitmekaar oor hulle baie oortredings, want hulle is in opstand teen U. Maar laat almal wat by U skuil, bly wees; laat hulle vir altyd juig en sprei U beskerming oor hulle uit. Laat dié wat u Naam liefhet, oor U jubel. Want U, Here, U seën die •regverdige, soos 'n skild omring U hom met welwillendheid. Vir die •musiekleier. Met snarespel. Op “Die agtste”. 'n Psalm. Van Dawid. Here, moet my in u toorn nie teregwys en my in u woede nie bestraf nie. Wees my genadig, Here, want ek, ek kwyn weg; genees my, Here, want tot in my gebeente is ek beangs, ja, tot in my siel is ek heeltemal vreesbevange. Ag, Here, hoe lank nog? Keer terug, Here, red my lewe; verlos my op grond van u troue liefde! Waarlik, in die dood kan u gevierde Naam nie aangeroep word nie. Wie kan U in die •doderyk prys? Ek is moeg van my gesug, elke nag deurdrenk ek my bed, deurweek ek my slaapbank met trane. My oë is dik geswel van verdriet, vermoeid van al my teenstanders. Gee pad van my af, julle almal wat onreg pleeg, want die Here het gehoor hoe hard ek huil. Die Here het my smeking gehoor; die Here aanvaar my gebed. Al my vyande staan beskaamd, hulle is heeltemal vreesbevange. Binne 'n oogwink draai hulle vernederd weg. 'n Sjighajoon. Van Dawid. Wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van die woorde van Kus, 'n Benjaminiet. Here, my God, by U skuil ek; verlos my van almal wat my agtervolg, en red my, anders verskeur hulle my soos 'n leeu wat sy prooi wegsleep; en daar is niemand wat kan red nie. Here, my God, as ek iets gedoen het, as daar onreg aan my hande kleef, as ek my vriend kwaad aangedoen het, my teenstander sonder rede beroof het, mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, my lewe in die grond vertrap, en my eer deur die modder sleep. Staan op, Here, in u toorn, tree op teen die woedebuie van my teenstanders, word wakker, my God; U vel die oordeel! Laat nasies rondom U vergader; keer terug na u verhewe plek bo hulle. Die Here spreek reg oor volke. Oordeel my op grond van my geregtigheid, Here, op grond van my onberispelikheid, Verhewene. Beëindig tog die boosheid van goddeloses; maar hou die regverdiges staande, U wat hart en niere toets, o regverdige God! God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos. God is 'n regverdige regter – 'n God wat elke dag sy verontwaardiging toon. As iemand hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp, span Hy sy boog en lê daarmee aan. Hy maak vir Hom dodelike wapens gereed; Hy maak van sy pyle brandpyle. Kyk, wie bevrug raak met onreg en swanger is van gemeenheid, gee geboorte aan bedrog. Wie 'n put grawe en dit uithol, val in die vangkuil wat hy gemaak het. Sy gemeenheid kom op sy eie kop neer; op sy skedel kom sy geweld neer. Ek wil die Here prys vir sy regverdige optrede; ek wil die Naam van die Here, die Allerhoogste, besing. Vir die •musiekleier. Op Haghittiet. 'n Psalm. Van Dawid. Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig. Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak. Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – wat is 'n mens dan dat U aan hom dink, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk? U het hom net minder as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon. U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete gestel: al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, die voëls van die hemel, en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane. Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde! Vir die •musiekleier. Op “Dood van die seun”. 'n Psalm. Van Dawid. Ek wil die Here prys met my hele hart; ek wil van al u wonderdade vertel. Ek wil bly wees en my in U verheug; ek wil u Naam besing, Allerhoogste. Wanneer my vyande terugdeins, struikel hulle en kom hulle om vanweë u teenwoordigheid, want U het my reg in my regsaak gehandhaaf. U het op die troon gesit as 'n regverdige regter. U het die nasies tereggewys, die goddeloses vernietig; hulle naam het U vir altyd en ewig uitgewis. Die vyand – hulle is tot niet, puinhope vir goed. Die stede het U ontwortel. Die herinneringe aan hulle, dit het verdwyn. Die Here regeer vir ewig; Hy vestig sy troon vir die regspraak. Hý oordeel die wêreld in •geregtigheid; oor die nasies spreek Hy reg met billikheid. Die Here sal 'n toevlugsoord wees vir die onderdrukte, 'n toevlugsoord in tye van nood. Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here. Besing die Here wat in Sion regeer; maak sy dade onder die volke bekend. Want Hy wat bloedvergieting vergeld, dink aan die magteloses; Hy vergeet nie hulle hulpgeroep nie. Wees my genadig, Here, kyk hoe my haters my verdruk – U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood – sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion. Ek wil juig oor die verlossing wat U bring. Nasies het weggesink in die vangkuil wat hulle gemaak het; in daardie vangnet wat hulle gespan het, is hulle voete gevang. Die Here het Homself bekend gemaak: Hy laat reg geskied; goddeloses raak in hulle eie handewerk verstrik. Goddeloses draai om na die •doderyk, al die nasies wat God vergeet. Maar die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie vir altyd verlore nie. Staan op, Here, mense moet nie die oorhand kry nie; laat nasies voor U teregstaan. Vervul hulle met vrees, Here; die nasies moet besef dat hulle net mense is. Waarom, Here, bly U so ver staan, waarom verberg U Uself in tye van nood? In hulle hoogmoed agtervolg goddeloses die magtelose. Mag hulle verstrik raak in die sameswerings wat hulle beplan! Ja, 'n goddelose spog oor sy hartsbegeertes, en terwyl hy wins maak, vervloek en verag hy die Here. Die goddelose sê met sy neus in die lug: “God vra nie rekenskap nie; daar is geen God nie” – dit is al sy gedagtes. Sy paaie is altyd voorspoedig. U beslissings is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders. Hy sê in sy hart: “Ek sal nie struikel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie teenspoed sal ervaar nie.” Sy mond is vol vervloeking, bedrog en verdrukking; onder sy tong is gemeenheid en onreg. Naby dorpies lê hy in 'n hinderlaag; in skuilplekke vermoor hy die onskuldige; sy oë is op die loer vir die weerlose. In 'n skuilplek lê hy soos 'n leeu in die ruigte; hy lê die magtelose voor om hom te vang; hy vang die magtelose deur sy vangnet toe te trek. Verpletter krimp die weerlose ineen; hy val in sy mag. Die goddelose sê in sy hart: “God vergeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien dit nooit raak nie.” Staan op, Here; God, lig u hand; vergeet die magteloses tog nie! Waarom verag 'n goddelose mens God? Hy sê in sy hart U eis nie rekenskap nie. U sien tog self die moeite en verdriet, U sien dit raak. Deur dit in u hand te gee, laat weerloses dit aan U oor; vir weeskinders is U 'n helper. Breek die arm van die goddelose, ja, eis rekenskap van 'n bose mens oor sy goddeloosheid totdat U niks meer vind nie. Die Here is Koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land. U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here. U versterk hulle harte, U oor luister aandagtig om aan die weeskind en die onderdrukte reg te laat geskied. Niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie. Vir die •musiekleier. Van Dawid. By die Here skuil ek; hoe kan julle dan vir my sê: “Vlug soos 'n voël na die berge, want kyk, die goddeloses span 'n boog, hulle sit hulle pyle op die boogsnaar om in die donker op die opregtes van hart te skiet. As die fondamente afgebreek word, wat kan 'n regverdige dan doen?” Die Here is in sy •heilige paleis, die Here – in die hemel is sy troon. Sy oë sien; sy blik toets die mensekinders. Die Here – 'n regverdige toets Hy, maar in 'n goddelose en iemand wat geweld liefhet, het Hy 'n weersin. Hy laat gloeiende kole op goddeloses neerreën – vuur en swael en 'n verskroeiende wind; dit is wat hulle toekom, dit is hulle beker. Want regverdig is die Here, Hy het geregtigheid lief, opregtes sal sy teenwoordigheid ervaar. Vir die •musiekleier. Op “Die agtste”. 'n Psalm. Van Dawid. Verlos tog, Here! Want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn. Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde. Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat, hulle wat sê: “Danksy ons tonge is ons sterk; ons lippe is onder ons beheer. Wie is heer oor ons?” “Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. “Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.” Die Here se woorde is suiwer woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltoond in die grond, dit is sewe maal gesuiwer. U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag. Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Hoe lank nog, Here? Gaan U my vir altyd vergeet? Hoe lank nog gaan U u gesig vir my verberg? Hoe lank nog moet ek kwellinge in my binneste dra, elke dag kommer in my hart? Hoe lank nog gaan my vyand die oorhand oor my hê? Sien dit tog raak, antwoord my, Here, my God! Verlig tog my oë, anders sink ek in 'n doodslaap weg, anders sê my vyand, “Ek het hom oorweldig,” anders juig my teenstanders omdat ek tot 'n val gebring word. Maar ek – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing. Ek wil vir die Here sing, omdat Hy aan my goed gedoen het. Vir die •musiekleier. Van Dawid. Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek. Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos 'n mens brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie. Dan oorweldig skrik hulle, want God is met die regverdige geslag. Julle wil die planne van die magtelose bespotlik maak, maar die Here is sy skuilplek. Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees. 'n Psalm. Van Dawid. Here, wie mag 'n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u •heilige berg? Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, wat van harte die waarheid praat. Hy laster nie, doen sy medemens nie kwaad aan nie en bespot nie sy naaste nie. In sy oë is die een wat verwerp is, veragtelik, maar hy eer dié wat vir die Here ontsag het. Al sweer hy tot sy nadeel, hy verander nie. Hy leen nie sy geld teen rente uit nie, en aanvaar nie 'n omkoopgeskenk ten koste van die onskuldiges nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nooit struikel nie. 'n Miktaam. Van Dawid. Beskerm my, o God, want by U skuil ek. Ek het vir die Here gesê: “U is my Heer; buiten U is daar vir my niks goeds nie.” Wat die heiliges in die land betref, ja, die magtiges, by wie ek al my vreugde gevind het: Wie hulle na ander gode haas, vererger hulle smart. Ek sal nie vir hulle •drankoffers van bloed uitgiet nie, en ek sal nie hulle name op my lippe neem nie. Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Ek sal die Here prys wat my raad gegee het, selfs in die nag wys my hart my tereg. Ek hou die Here altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie. Daarom is my hart bly en juig my binneste; ja, my liggaam bly veilig, want U sal my lewe nie aan die •doderyk oorlewer nie; U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie. U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd. 'n Gebed. Van Dawid. Luister tog na 'n regverdige saak, Here, gee tog aandag aan my klaagroep, hoor my gebed wat kom oor lippe sonder bedrog. Van U af moet die oordeel oor my kom; mag u oë regverdig onderskei. U het my hart getoets, my snags ondersoek, U het my deur die smeltkroes laat gaan, maar U het niks gevind nie. Ek het my voorgeneem: My mond sal nie oortree nie. Wat die optrede van mense betref, hou ek by die woord van u lippe. Ek het die paaie van geweldenaars vermy. My voete het u paaie nougeset gevolg; my voetstappe het nie gewankel nie. Ek roep U aan, want U verhoor my, o God; draai u oor na my, luister na my woorde. Wys my die wonders van u troue liefde, Verlosser van hulle wat teen teenstanders skuiling soek by u regterhand. Beskerm my soos die appel van u oog; verberg my in die skadu van u vlerke vir goddeloses wat my geweld wil aandoen, vir my vyande wat my lewe van alle kante bedreig. Hulle ongevoelige harte is geslote; met hulle monde praat hulle aanmatigend. Hulle het op my spoor gebly, nou het hulle my omsingel; hulle is daarop ingestel om my op die grond te laat lê. Die goddelose is soos 'n leeu wat daarop uit is om te verskeur, soos 'n jong leeu wat in skuilplekke gereed sit. Staan op, Here, loop op hom af, laat hom die knie buig. Bevry my met u swaard van goddeloses, met u hand, Here, van hulle wat doodmaak. Mense wat doodmaak, se lewens is van korte duur; dit is hulle lot in die lewe. Met u verborge straf vul U hulle mae; hulle kinders word versadig daarvan en wat oorbly, laat hulle agter vir hulle jong kinders. Wat my betref, in geregtigheid sal ek u teenwoordigheid ervaar; wanneer ek wakker word, sal ek van u verskyning versadig wees. Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. Hy het gesê: Ek het U lief, Here, my sterkte! Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord. Die Een wat geloof moet word – roep ek uit – is die Here! En van my vyande word ek verlos. Bande van die dood het my omsluit, strome van vernietiging het my verskrik, bande van die •doderyk het my verstrengel, vangstrikke van die dood het my ingewag. In my benoudheid het ek na die Here bly roep; na my God het ek om hulp geroep. In sy paleis het Hy my stem gehoor; my hulpgeroep voor Hom het sy ore bereik. Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand: Rook het uit sy neus opgestyg, 'n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit opgevlam. Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; diepe duisternis was onder sy voete. Hy het op 'n gerub gery, Hy het gevlieg, gesweef op die vlerke van die wind. Hy het van die donker sy beskutting gemaak; rondom Hom was sy skuiling swaar wolke, donker van water. Uit die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek met hael en gloeiende kole vuur. Die Here laat die donder weerklink in die hemelruim; die Allerhoogste laat sy stem hoor met hael en gloeiende kole vuur. Hy stuur sy pyle en jaag hulle uiteen; Hy werp sy weerligstrale en bring hulle in verwarring. Die beddings van die strome het sigbaar geword; die fondamente van die aarde is ontbloot deur u dreiging, Here, deur die windvlaag uit u neus. Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, my gegryp, my uit die watermassa opgetrek. Hy het my weggeruk van my magtige vyand, weg van my haters, want hulle was sterker as ek. Op die dag van my teenspoed het hulle my ingewag, maar die Here was vir my 'n stut: Hy het my uitgelei na 'n oopte; Hy het my bevry omdat Hy my goedgesind is. Die Here het aan my goed gedoen op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed. Want ek het op die Here se paaie gebly en my nie skuldig gemaak voor my God nie. Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte – daarvan wyk ek nie af nie. Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sondeskuld. Die Here het my vergoed op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë. Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor iemand wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree U berekenend op! Ja, dit is U wat 'n magtelose volk verlos en trotse oë verneder; dit is U wat my lig laat skyn, Here. My God verlig my donkerte. Ja, met U hardloop ek 'n bende tegemoet, met my God spring ek oor 'n muur. God, sy weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is 'n rots buiten ons God? God is die Een wat my met krag omgord en my pad gelyk maak. Hy maak my voete soos dié van wildsbokke; op hoë plekke laat Hy my vasstaan. Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, sodat my arms 'n bronsboog kan span. U het vir my u skild van verlossing gegee, u •regterhand ondersteun my en u antwoord maak my sterk. U skep ruimte vir my voetstappe; my enkels swik nie. Ek agtervolg my vyande en haal hulle in; ek draai nie om voordat ek hulle uitgewis het nie. Ek verpletter hulle, hulle kan nie weer opstaan nie, hulle val onder my voete. U omgord my met krag vir die geveg; U laat my teenstanders die knie voor my buig. My vyande – U het hulle vir my laat vlug; en my haters – ek kon hulle vernietig. Hulle het om hulp geroep, maar daar was geen verlosser nie, selfs na die Here geroep, maar Hy het hulle nie geantwoord nie. Ek het hulle so fyngestamp soos stof in die wind; soos modder in die strate het ek hulle uitgegooi. U het my bevry van die gestry onder mense, my die hoof van nasies gemaak. Mense wat ek nie geken het nie, dien my; sodra hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my. Vreemdes veins onderdanigheid aan my; vreemdes verloor moed, bewend kom hulle uit hulle kerkers. Die Here leef! Lofwaardig is my rots; die God wat my verlos, is verhewe! God is die een wat my toelaat om wraak te neem; Hy onderwerp volke aan my, Hy wat my van my vyande bevry. Ja, U verhoog my bo my teenstanders; van manne van geweld ruk U my weg. Daarom sal ek U prys onder die nasies, Here, u Naam wil ek besing. Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee, wat troue liefde bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en sy nageslag vir altyd. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit 'n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee. Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld. Vir die son het Hy 'n tent opgeslaan in die hemel. Die son is soos 'n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos 'n held wat op die pad hardloop. Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie. Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë. Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig. Dit is begeerliker as goud, begeerliker as 'n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as 'n heuningkoek wat drup. Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer 'n mens daarby hou, is die beloning groot. Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes! Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings. Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Mag die Here u antwoord op die dag van benoudheid; mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. Mag Hy vir u hulp stuur uit die heiligdom, en u uit Sion ondersteun. Mag Hy al u offergawes in gedagte hou, u •brandoffers aanvaarbaar vind. Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, en elkeen van u planne laat slaag. Ons wil juig oor u verlossing, in die Naam van ons God die vaandel hoog hou. Mag die Here aan al u versoeke voldoen! Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos; Hy sal hom antwoord uit sy •heilige hemel met kragtige verlossingsdade van sy •regterhand. Party beroem hulle op strydwaens, ander weer op perde, maar ons, ons beroem ons op die Naam van die Here ons God. Hulle sak inmekaar en val, maar ons, ons staan op en bly staande. Here, verlos tog die koning! Mag Hy ons antwoord op die dag wanneer ons roep! Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing. Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang, het U hom nie geweier nie. Ja, U tree hom tegemoet met goeie seëninge; U sit 'n kroon van fyngoud op sy kop. Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, 'n lang leeftyd, vir altyd en ewig. Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en majesteit verleen U aan hom. Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge. U maak hom baie bly met u teenwoordigheid. Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie. U hand sal al u vyande vind. U regterhand sal dié vind wat u haat. U maak van hulle 'n vurige oond wanneer u verskyn. Die Here sal hulle in sy toorn verslind en vuur sal hulle verteer. Hulle vrug sal u uit die land laat verdwyn en hulle nageslag onder die mense. Wanneer hulle boosheid bedink teen u, 'n komplot smee, sal hulle nie slaag nie; want u sal hulle op die vlug laat slaan wanneer u op hulle aanlê met 'n gespande boog. Verhef U, Here, in u krag! Ons wil sing, u mag wil ons besing. Vir die •musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. 'n Psalm. Van Dawid. My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom is U ver daarvan om my te verlos, ver van die woorde wat ek uitskreeu? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir my nie. U is tog die •Heilige, U heers waar die lofliedere van Israel opklink. Op U het ons voorouers vertrou, hulle het vertrou en U het hulle bevry. Tot U het hulle om hulp geroep en hulle het ontvlug; op U het hulle vertrou en hulle het nie beskaamd gestaan nie. Maar ek is 'n wurm en nie 'n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk. Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle gryns en skud die kop: “Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!” U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my op die borste van my moeder laat vertrou het. Op U is ek aangewese van die moederskoot af; van my geboorte af is U my God. Moenie ver van my bly nie, want die nood is naby; daar is immers niemand wat help nie! Baie bulle het my omsingel; die sterkes van Basan het my vasgekeer. Hulle het hulle monde teen my oopgesper soos 'n leeu wat verskeur en brul. Soos water is ek uitgestort, my hele gebeente val uitmekaar; my hart het geword soos was, dit het in my liggaam gesmelt. My krag het uitgedroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê. Inderdaad, honde het my omsingel. 'n Bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor. Ek kan al my bene tel. Hulle staar my aan met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere. U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp. Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde. Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord. Ek wil u Naam verkondig aan my •broers; in die byeenkoms wil ek U loof: “Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag van Jakob, vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.” U is die rede vir my lofprysing in 'n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het. Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die Here loof. Mag julle harte vir altyd leef! Almal tot aan die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die Here bekeer. Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig; want aan die Here behoort die koningskap, en Hy heers oor die nasies. Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef, in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel, elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 'n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag. Hulle sal kom en sy geregtigheid bekend maak aan mense wat nog gebore moet word: Hy het dit gedoen. 'n Psalm. Van Dawid. Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam. Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel. U dek vir my 'n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor. Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae. Van Dawid. 'n Psalm. Aan die Here behoort die aarde en die volheid daarvan, die wêreld en dié wat daarin woon, want Hy het dit op oseane gegrond en op strome gevestig. Wie mag teen die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan? Die mens met skoon hande en 'n rein hart wat nie na nietigheid hunker en nie sweer by wat vals is nie, sal seën ontvang van die Here en •geregtigheid van die God wat hom red – dit is die geslag wat na Hom soek, hulle wat u teenwoordigheid opsoek, dit is Jakob. Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan ingaan. Wie is hierdie roemryke Koning? Die Here, magtig en heldhaftig, die Here, heldhaftig in die stryd. Lig op julle koppe, poorte, ja, lig op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan ingaan. Wie is Hy, hierdie roemryke Koning? Die Here, Heerser oor alle magte, Hý is die roemryke Koning. Van Dawid. Na U, Here, hunker ek. My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie. Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal beskaamd staan. Here, maak u paaie aan my bekend; leer my u weë. Lei my deur u waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag. Dink aan u barmhartigheid en u troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar. Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here. Die Here is goed en reg, daarom leer Hy sondaars die pad. Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer. Al die paaie van die Here is troue liefde en waarheid vir hulle wat hou by sy verbond en sy bepalings. Ter wille van u Naam, Here, vergewe my sondeskuld, want dit is groot. Wie is die mens wat vir die Here ontsag het? Die Here leer hom die pad wat hy moet kies. Sy lewe verloop voorspoedig en sy nageslag sal die land besit. Die Here neem hulle wat vir Hom ontsag het, in sy vertroue, en sy verbond is daar om hulle te onderrig. My oë bly altyd op die Here, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry. Draai U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos. Die benoudheid van my hart is oorweldigend; lei my uit my kwellinge. Sien tog my ellende en my swaarkry raak en vergewe al my sonde. Kyk na my vyande, hoe baie hulle geword het; en hoe fel hulle my haat. Beskerm tog my lewe en red my; laat my nie beskaamd staan nie, want ek skuil by U. Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U. Bevry Israel, o God, van al sy benoudheid. Van Dawid. Handhaaf my reg, Here, want ek, ek gedra my onberispelik; ek vertrou op die Here, ek wankel nie. Toets my, Here, en stel my op die proef. Suiwer my niere en my hart! Want ek hou u troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid. Ek sit nie by bedrieërs nie, en by slinkse mense kom ek nie. Ek het 'n weersin in die byeenkoms van kwaaddoeners, en by goddeloses sit ek nie. Ek was my hande om my onskuld te toon, sodat ek rondom u altaar kan loop, Here, om 'n loflied te laat opklink en te vertel van al u wonderdade. Here, ek het die huis waar U woon, lief, u heerlike woonplek. Moet my nie wegruk saam met sondaars, my lewe saam met manne wat bloed vergiet nie, hulle aan wie se hande 'n skanddaad kleef, en wie se regterhand vol omkoopgeld is. Maar ek, ek gedra my onberispelik – red my en wees my genadig! My voet staan op gelyk grond; in die byeenkomste sal ek die Here prys. Van Dawid. Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees? As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val. Al sou 'n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou 'n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou. Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy •tempel. Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op 'n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op 'n rots. Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my. Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die Here besing. Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my! My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, Here, soek ek op. Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red. Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem. Here, leer my u pad, lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande. Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan. As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie! Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here! Van Dawid. Na U, Here, roep ek! My Rots, moet U nie vir my doof hou nie, sodat ek nie, wanneer U teenoor my sou swyg, word soos dié wat in die put afdaal nie. Luister na my smeekgebed, as ek na U om hulp roep, as ek my hande uitstrek na die heiligste deel van u heiligdom. Moet my nie wegvoer saam met goddeloses nie – mense wat onreg pleeg, wat oor vrede praat met hulle naaste terwyl daar kwaad in hulle harte is. Vergeld hulle ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede; vergeld hulle vir hulle handewerk, gee hulle hulle verdiende loon. Omdat hulle nie ag slaan op die Here se dade en op sy handewerk nie, sal Hy hulle afbreek en nie opbou nie. Die Here moet geprys word, want Hy het na my smeekgebed geluister. Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys: “Die Here is vir sy volk 'n krag. Hy is die toevlug van verlossing vir sy gesalfde. “Verlos tog u volk en seën u erfdeel; wees vir hulle 'n herder en dra hulle vir altyd!” 'n Psalm. Van Dawid. Gee eer aan die Here, godeseuns! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid. Die stem van die Here is oor die waters, die God van heerlikheid laat dit dreun, die Here is bo die magtige waters, die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk. Die stem van die Here breek seders, die Here versplinter die seders van die Libanon. Hy laat hulle bokspring soos 'n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels. Die stem van die Here splyt rotse met vlamme. Die stem van die Here laat die woestyn bewe, die Here laat die woestyn by Kades bewe. Die stem van die Here laat wildsbokke lam, dit stroop bosse kaal. Sy hele paleis sê: “Heerlikheid!” Die Here troon oor die vloed, ja, die Here troon as koning vir ewig. Die Here gee krag aan sy volk, die Here seën sy volk met vrede. 'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die huis. Van Dawid. Ek verheerlik U, Here, want U het my opgetrek en U het nie toegelaat dat my vyande hulle oor my verheug nie. Here my God, ek het na U om hulp geroep en U het my gesond gemaak. Here, U het my lewe uit die •doderyk laat opkom; U het my lewend gehou tussen dié wat afdaal in die put. Besing die Here, julle wat sy getroue volgelinge is, en prys sy •heilige, gevierde Naam, want sy toorn duur 'n oomblik, sy goedgesindheid 'n lewe lank. In die aand word daar aanhoudend gehuil, maar teen die oggend is daar jubelkrete. Ek is die een wat onbesorg gesê het: “Ek sal nooit wankel nie!” Deur u goedgesindheid het U, Here, my so sterk soos 'n berg laat staan. Verberg U u gesig, is ek beangs. “Na U, Here, roep ek, by my Heer smeek ek om genade: Watter nut het dit as my bloed gestort word, as ek na die grafkuil afgaan? Sal stof U prys? Sal dit u trou verkondig? Luister, Here, en wees my genadig! Here, wees vir my 'n helper! “U het my rouklag in 'n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord, sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie. Here, my God, ek sal U vir altyd prys!” Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. By U, Here, skuil ek. Laat my nie vir altyd beskaamd staan nie, bevry my deur u •geregtigheid. Draai u oor na my, red my gou; wees 'n rotsvesting vir my, 'n bergskuiling tot my redding. Want U is my rotsvesting, en my bergskuiling; en ter wille van u Naam moet U my lei en begelei. Laat my loskom uit die vangnet wat hulle vir my gespan het; U is immers my toevlug. In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God. Ek het 'n weersin in mense wat nietige afgode aanhang, maar ek, op die Here vertrou ek. Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde – dat U my ellende raakgesien het, bewus was van die benouenis van my lewe, my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op 'n ruim plek laat staan het. Wees my genadig, Here, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my •siel en liggaam, ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met 'n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op. Ek het 'n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, 'n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg. Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos 'n gebreekte kleipot. Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem. Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: “U is my God, my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg. Laat u aangesig oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde. Here, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddeloses beskaamd staan, laat hulle die •doderyk stil binnegaan. Laat die bedrieglike lippe swyg, hulle wat uit die hoogte en met minagting onbeskaamd oor die regverdiges praat. Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk. U verberg hulle in die beskutting van u teenwoordigheid teen die sameswering van mense; teen twisgierige tonge steek U hulle weg in 'n skuiling. Die Here moet geprys word, want in 'n beleërde stad het Hy sy troue liefde wonderbaarlik aan my bewys. Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het. Julle moet die Here liefhê, almal wat aan Hom getrou is. Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree. Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig. Van Dawid. 'n Maskiel. Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die Here sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag. Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die Here bely, en U het my sondeskuld vergewe. Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is. Die geluid van 'n groot watervloed sal hom nie bereik nie. U bied vir my beskutting; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Ek wil jou insig gee, Ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou. Moet julle nie soos 'n perd, soos 'n muil sonder verstand, gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie. 'n Goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom. Verbly julle in die Here, en juig, regverdiges; ja, jubel dit uit, almal met opregte harte. Regverdiges, jubel oor die Here! 'n Loflied pas by opregtes. Dank die Here met begeleiding van liere; besing Hom met begeleiding van tiensnarige harpe. Sing vir Hom 'n nuwe lied; speel mooi op snaarinstrumente met uitroepe van vreugde. Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar. Hy is lief vir reg en •geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde. Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër. Hy hou die water van die see soos in 'n dam bymekaar; Hy gaar die •oerwaters op in voorraadkamers. Die hele aarde moet vir die Here ontsag hê, Hom moet al die bewoners van die wêreld vrees; want Hy het gepraat, en dit was daar, Hy het beveel, en toe staan dit daar. Die Here verydel die raadsplanne van nasies, Hy dwarsboom die planne van volke. Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag. Gelukkig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy as sy eiendom gekies het. Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense. Uit die plek waar Hy woon beskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen. Geen koning word deur 'n groot leër verlos nie; 'n krygsheld red homself nie deur groot krag nie. 'n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie bevry nie. Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood. Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild. Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy •heilige Naam vertrou ons. Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag! Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het. Ek wil die Here die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof. In die Here sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug. Maak saam met my die Naam van die Here groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. Ek het die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. Hierdie magtelose het geroep en die Here het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos. Die •Engel van die Here trek 'n laer rondom hulle wat vir die Here ontsag het en Hy red hulle. Beproef dit en ervaar: Die Here is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil. Julle moet ontsag hê vir die Here, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie. Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die Here soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie. Kom, kinders, luister na my, ontsag vir die Here sal ek julle leer. Wie is die mens wat lewe begeer, graag jare wil hê om die goeie te ervaar? Weerhou jou tong van kwaad en jou lippe daarvan om bedrieglik te praat. Vermy die kwaad, en doen die goeie; soek vrede, en jaag dit na. Die oë van die Here is op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep. Die gesig van die Here is gerig teen kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af. Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle. Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy. 'n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die Here hom. Hy beskerm al sy bene; nie een van hulle word gebreek nie. Boosheid veroorsaak 'n goddelose se dood en hulle wat 'n regverdige haat, sal daarvoor boet; die Here red die lewens van sy diensknegte en niemand wat by Hom skuil, sal boet nie. Van Dawid. Voer 'n regstryd, Here, teen dié wat my aankla, veg teen dié wat met my veg. Neem 'n klein- en 'n grootskild, en staan op om my te help. Trek die spies en lans uit, om my vervolgers tegemoet te gaan. Sê vir my: “Ek is jou verlossing!” Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd en verneder staan, laat hulle wat kwaad teen my beplan, terugdeins en verleë staan. Laat hulle soos kaf voor die wind wees, terwyl die •Engel van die Here hulle wegvee. Laat hulle pad donker en glibberig wees, terwyl die Engel van die Here hulle agtervolg. Hulle het immers sonder rede in die geheim vir my hulle vangnet gespan, sonder rede vir my 'n vanggat gegrawe. Laat teenspoed oor hulle kom sonder dat hulle dit weet, en die net wat hulle gespan het – laat dit hulle vang. Deur teenspoed moet hulle daarin val. Ek sal dan juig in die Here, ek sal jubel oor sy verlossing. My hele wese sal sê: “ Here, wie is soos U, wat die magtelose red van dié wat sterker as hy is, ja, die magtelose en behoeftige van dié wat hom beroof?” Gewelddadige getuies staan op, oor iets waarvan ek niks weet nie, ondervra hulle my. Hulle vergeld my met kwaad vir goed; ek is stoksielalleen. Maar ek het, toe hulle siek was, rouklere aangetrek; ek het myself gefolter deur te vas. Toe my gebed na my teruggekeer het, was ek rusteloos asof dit 'n vriend, my •broer, was. Soos iemand wat oor 'n moeder treur, was ek geboë en in rouklere. Maar toe ek struikel, was hulle verheug en het saamgedrom; aanvallers het teen my saamgedrom sonder dat ek dit besef, hulle het my sonder ophou uitmekaargeskeur. Hulle toets my, hulle spot my met minagting, hulle kners op hulle tande vir my. My Heer, hoe lank gaan U toekyk? Red my lewe van hulle vernietiging, my enigste lewe van die jong leeus. Dan sal ek U prys in 'n groot vergadering, tussen 'n menigte mense sal ek U loof. Laat my vyande hulle nie valslik oor my verheug nie, laat hulle wat my sonder rede haat, nie met die oog knik nie; want dit is nie vrede waaroor hulle praat nie. Teen die mense wat stil is in die land versin hulle woorde van bedrog. Ja, hulle rek hulle monde wyd oor my; hulle sê: “Aha! Aha! Ons het dit self gesien!” U het dit tog gesien, Here, moet tog nie stilbly nie, my Heer, moenie ver van my af bly nie! Word wakker! Staan op vir my regte, vir my verdediging, my God en my Heer. Handhaaf my reg volgens u reg, Here, my God, laat hulle nie oor my bly wees nie. Laat hulle nie in hulle hart sê, “Aha, net wat ons wou hê!” nie. Laat hulle nie sê, “Ons het hom verslind!” nie. Laat dié wat hulle oor my teenspoed verbly, almal saam beskaamd en verleë staan; laat skaamte en vernedering hulle soos klere bedek, dié wat hulle teen my groot hou. Mag dié wat graag wil hê dat reg aan my geskied, juig en bly wees en mag hulle aanhoudend sê: “Groot is die Here, wat vrede vir sy dienskneg begeer!” My tong sal dan mymerend bly prewel oor u geregtigheid, die hele dag lank oor die lof wat U toekom. Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid. 'n Uitspraak oor die oortreding van 'n goddelose leef in my gedagtes: “Daar is geen vrees vir God nie. Want in sy eie oë is hy te seker van homself om sy sondeskuld te ontdek, om dit te haat. Die woorde uit sy mond is onreg en bedrog; hy laat na om wys op te tree, om goed te doen. Onreg bedink hy op sy bed; hy gaan staan op 'n pad wat nie goed is nie; kwaad verwerp hy nie.” Here, tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke. U geregtigheid is soos massiewe berge, u regspraak soos die groot •oerwater. U verlos mens en dier, Here. Hoe kosbaar is u troue liefde, o God! Mense skuil in die skadu van u vlerke. Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink. Ja, by U is die fontein van lewe, * in u lig sien ons lig. Reik met u troue liefde uit na hulle wat U ken, met u •geregtigheid na die opregtes van hart. Laat 'n verwaande voet my nie inhaal nie, en die hand van goddeloses my nie laat rondswerf nie. Daar val hulle wat onreg pleeg; hulle word platgedruk en kan nie weer opstaan nie. Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle. Vertrou op die Here en doen die goeie, bewoon die land en waak oor betroubaarheid. Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Vertrou jou lewenspad aan die Here toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou •geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson. Wees stil voor die Here, en krimp ineen van vrees voor Hom. Moet jou nie ontstel oor iemand wat sukses behaal op sy lewenspad nie, oor 'n mens wat komplotte smee nie. Moenie kwaad word nie en laat vaar die woede; moet jou nie ontstel nie, dit bring net kwaad. Want kwaaddoeners sal vernietig word, maar wie op die Here wag – hulle sal die land besit. Nog net 'n rukkie, dan sal daar geen goddelose meer wees nie. Jy sal sy plek dophou, maar hy sal nie daar wees nie. Die verdruktes sal die land besit en hulle verlustig in die oorvloed vrede. 'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom. My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom. Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag. Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word. Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses. Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die Here ondersteun regverdiges. Die Here dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue. Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig. Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die Here – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle. 'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam. Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. Danksy die Here stap 'n jong man met ferm treë; en die Here is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die Here hou hom aan sy hand. Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat 'n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie. Hy is altyd goedhartig en leen graag uit, sy nageslag is 'n seën vir ander. As jy die kwaad vermy en die goeie doen, sal jy vir altyd die land bewoon. Want die Here het •geregtigheid lief en wie aan Hom getrou is, verlaat Hy nie; en hulle word vir altyd beskerm, maar die nageslag van goddeloses word uitgeroei. Regverdiges sal die land besit en vir altyd daarin woon. Die mond van 'n regverdige prewel wysheid en sy tong praat wat reg is. Die wet van sy God is in sy hart, sy voete sal nie struikel nie. 'n Goddelose hou die regverdige dop, en is daarop uit om hom dood te maak. Die Here gee hom nie oor in sy hand nie, en veroordeel hom nie wanneer hy teregstaan nie. Wag op die Here, en hou by sy pad, dan sal Hy jou aansien gee om grond te besit. Jy sal toekyk wanneer goddeloses uitgeroei word. Ek het 'n goddelose gesien, 'n gewelddadige, wat gedy het soos 'n lowerryke, inheemse boom, maar toe iemand weer daar verbygaan, was hy weg! En toe ek hom soek, was hy nêrens te vinde nie. Let maar op 'n onbesproke mens, kyk maar na 'n opregte, want 'n vredeliewende mens het 'n toekoms; maar oortreders word almal saam uitgedelg, die toekoms van goddeloses word kortgeknip. Regverdiges se verlossing kom van die Here – hulle toevlug in 'n tyd van verdrukking. Die Here help hulle en bevry hulle. Hy bevry hulle van goddeloses en verlos hulle, want hulle skuil by Hom. 'n Psalm. Van Dawid. Ter herinnering. Bestraf my nie in u grimmigheid nie, Here, kasty my nie in u woede nie, want u pyle het my binnegedring en u hand het op my afgekom. Daar is geen gesonde plek aan my liggaam nie, vanweë u vervloeking. Daar is geen vrede in my gebeente nie, vanweë my sonde. Ja, my sondeskuld oorweldig my, soos 'n swaar las is dit ondraaglik vir my. My wonde stink, dit sweer vanweë my dwaasheid. Ek is kromgetrek, heeltemal geboë, die hele dag loop ek in rouklere rond. Ja, my lende is ontsteek, daar is geen gesonde plek aan my liggaam nie. Ek is kragteloos, heeltemal verpletter, ek kreun vanweë die onstuimigheid van my hart. My Heer, al my versugtinge lê ontbloot voor U, en my gesug is nie vir U verborge nie. My hart klop wild, my krag het my verlaat, en die lig van my oë – selfs dit is nie meer daar nie. My geliefdes en vriende staan van my af weg omdat ek geteister word; wie na aan my is, staan ver van my af. Hulle wat my lewe soek, stel strikke. Hulle wat my leed wil aandoen, dreig my met vernietiging. Die hele dag is hulle fluisterend aan die konkel. Maar ek, ek is soos 'n dowe, ek hoor nie, ek is soos 'n stomme wat nie sy mond oopmaak nie. Ek het geword soos iemand wat nie hoor nie, in wie se mond daar geen verweer is nie, want op U, Here, wag ek – U moet my antwoord, my Heer, my God. Ja, ek het gesê: “Anders is hulle verheug oor my, is hulle selfvoldaan teenoor my wanneer my voet swik.” Want ek is op die punt om te val, en van my pyn is ek altyd bewus. Ja, my sondeskuld bely ek, ek is bekommerd oor my sonde. Maar my vyande leef, hulle is magtig en hulle is baie, dié wat my sonder rede haat, wat goed met kwaad vergeld. Hulle kla my aan, al streef ek die goeie na. Moet my nie verlaat nie, Here! My God, moet nie ver van my af bly nie! Kom my tog gou te hulp, my Heer wat my verlos. Vir die •musiekleier. Vir Jedoetoen. 'n Psalm. Van Dawid. Ek het my voorgeneem om te let op my optrede en my tong van sonde te weerhou; ek moet 'n wag voor my mond plaas wanneer goddeloses in my teenwoordigheid is. Ek het toe stilgebly, doodstil; ek was stil sonder om 'n woord te sê, maar my pyn het vererger. My hart het gegloei in my binneste; toe ek gesug het, het die vuur opgevlam, my tong het los geraak: “ Here, maak my einde aan my bekend en die getal van my dae, hoeveel dit is. Ek wil weet hoe verganklik ek is. Kyk, U het my lewensdae net 'n paar handbreedtes gemaak, en my lewensduur is soos niks voor U. Elke mens wat stewig staan, is 'n blote asemteug. As 'n blote skaduwee gaan mense deur die lewe. Ja, terwyl hulle 'n blote asemteug is, werskaf hulle – mense maak bymekaar, maar weet nie wie dit gaan kry nie. “En nou, wat verwag ek, my Heer? My hoop, op U is dit gevestig. Verlos my van al my oortredings; maak my nie die bespotting van 'n dwaas nie. “Ek bly stil, ek maak my mond nie oop nie, want dit is U wat optree. Neem u teistering van my af weg; onder die krag van u hand vergaan ek. Met straf oor sondeskuld wys U 'n mens tereg; asof 'n mot dit verteer, laat U dit wat vir hom waardevol is, wegsmelt. 'n Blote asemteug is elke mens. “Hoor tog my gebed, Here, en luister na my hulpgeroep; moenie swyg by my trane nie, want 'n •vreemdeling is ek by U, 'n bywoner, soos al my voorgeslagte. Kyk weg van my af sodat ek vrolik kan wees, voordat ek heengaan en nie meer daar is nie.” Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die Here vertrou. Gelukkig is die mens wat sy vertroue in die Here stel, en hom nie wend tot hoogmoediges en dié wat hulle toevlug neem tot leuens nie. So baie het U, Here my God, gedoen – u wonders en wat U vir ons beplan het. Niemand kan met U vergelyk word nie. Ek wil dit graag bekend maak, en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. Slagoffers en •graanoffers is nie wat U wil hê nie – U het my ore oopgemaak – •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie gevra nie. Daarop het ek gesê: “Kyk, ek het gekom – in die •boekrol is oor my geskryf. Wat U behaag, my God, wil ek graag doen; u wet is in my binneste.” Ek het die goeie boodskap van geregtigheid gebring in 'n groot byeenkoms, kyk, my lippe hou ek nie dig nie. U weet dit self, Here. U geregtigheid het ek nie in my hart verberg nie, oor u trou en verlossing het ek gepraat. Ek het nie u troue liefde en waarheid vir 'n groot byeenkoms geheim gehou nie. U, Here, moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou, want tallose gevare omring my. My sondeskuld het my ingehaal, sodat ek nie kan sien nie; dit is meer as die hare op my kop. My moed het my begewe. Mag dit U behaag om my te red, Here, Here, kom my gou te hulp! Laat hulle almal saam beskaamd en verleë staan, hulle wat my lewe soek. Laat hulle terugdeins en verneder word, hulle wat behae het in my teenspoed. Mag hulle ontredderd wees deur hulle skande, hulle wat vir my sê: “Aha! Aha!” Mag almal wat U soek hulle verheug en in U bly wees; mag hulle wat u verlossing liefhet, voortdurend sê: “Die Here is groot!” Ek is magteloos en behoeftig, maar my Heer sal aan my dink. U is my hulp, my bevryder. My God, moenie talm nie. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Gelukkig is die mens wat die hulpelose in ag neem; op die dag van onheil sal die Here hom laat ontkom. Die Here sal hom beskerm en in die lewe hou; hy sal gelukkig genoem word in die land. U moet hom nie uitlewer aan die begeerte van sy vyande nie. Die Here sal hom ondersteun op sy siekbed. Waar hy ook al siek lê, maak U hom gesond. Ek, ek het gesê: “ Here, wees my genadig, genees my tog, want ek het teen U gesondig. My vyande wens my kwaad toe, ‘Wanneer sterf hy en verdwyn sy naam?’ As iemand my besoek, huigel hy; in sy hart koester hy onheilsgedagtes en as hy buite kom, dan praat hy. Almal wat my haat, fluister onder mekaar oor my. Teen my beplan hulle onheil Hulle sê, ‘Iets slegs het hom aangetas, en hy wat daar lê, sal nie weer opstaan nie.’ Selfs my vriend wat ek vertrou het, hy wat my brood geëet het, het die hakskeen teen my gelig.” Maar U, Here, wees my genadig en laat my opstaan, sodat ek hulle kan vergeld. Hieraan weet ek dat U my goedgesind is: dat my vyand nie oor my juig nie. Wat my betref, omdat ek onberispelik is, ondersteun U my. U laat my altyd in u teenwoordigheid staan. Die Here, die God van Israel, moet geprys word, van ewigheid af en vir ewig. Amen, amen. Vir die •musiekleier. 'n Maskiel. Van die Koragiete. Soos 'n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die •tempel ingaan en voor God verskyn? Trane is dag en nag my brood, omdat daar die hele dag lank vir my gevra word: “Waar is jou God?” Hieraan moet ek dink terwyl ek my hart uitstort, hoe ek optrek in 'n magtige skare, hoe ek voor hulle uit gaan na die huis van God, met luide jubelkrete en dankliedere – 'n feesvierende menigte. Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring. My God! My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel. Bedags sal die Here sy troue liefde laat geld, en snags sal 'n lied vir Hom by my opkom, 'n gebed tot die God van my lewe. Ek wil vir God sê: “My rotsvesting, waarom het U my vergeet, waarom moet ek in rouklere loop oor die verdrukking deur 'n vyand?” Dit sny tot op die been, as my teenstanders my tart deur die hele dag lank vir my te vra: “Waar is jou God?” Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer prys vir die verlossing wat Hy, my God, deur sy teenwoordigheid bring. Handhaaf my reg, o God, en verdedig my saak teen 'n ontroue nasie; bevry my van mense wat bedrog en onreg pleeg. U is immers die God by wie ek toevlug soek. Waarom verwerp U my dan; waarom moet ek in rouklere loop oor die verdrukking deur 'n vyand? Stuur u lig en u waarheid; laat dit my lei, my bring na u •heilige berg en na u woonplek, sodat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God wat my van blydskap laat jubel, en sodat ek U, o God, my God, kan prys met 'n lier. Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer dank vir die verlossing wat Hy, my God, deur sy teenwoordigheid bring. Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Maskiel. O God, met ons eie ore het ons dit gehoor, ons voorouers het ons vertel van die dade wat U verrig het in hulle tyd, in die ou tyd: U, U het met u eie hand nasies verdryf, maar húlle het U geplant, U het volke geteister, maar húlle het U laat uitbrei. Ja, ons voorouers het nie met hulle swaard 'n land in besit geneem nie; hulle arm het nie aan hulle die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u teenwoordigheid, omdat U hulle goedgesind was. Ú is my koning, my God. Gebied dan die verlossing van Jakob! Met U deurboor ons ons teenstanders; in u Naam trap ons hulle plat wat teen ons opstaan. Want dit is nie my boog waarop ek vertrou nie, en dit is nie my swaard wat my verlos nie. Ja, U verlos ons van ons teenstanders, en U laat hulle wat ons haat, beskaamd staan. In God roem ons die hele dag lank, u Naam prys ons vir altyd. En tog het U ons verstoot en verneder; U trek nie meer saam met ons leërs uit nie. U laat ons terugdeins vir 'n teenstander, en ons haters plunder vir hulleself. U lewer ons uit soos slagvee; onder die nasies het U ons verstrooi. U verkoop u volk goedkoop; U maak geen wins uit die verkoopprys nie. U maak ons 'n bespotting vir ons bure, die spot en hoon van hulle rondom ons. U maak van ons 'n spotnaam onder die nasies, U laat die volke hulle koppe skud oor ons. Die hele dag lank verduur ek vernedering en is my gesig rooi van skaamte oor die luide uittarting en verguising, oor die teenwoordigheid van vyande en wraakgieriges. Dit alles het met ons gebeur, maar ons het U nie vergeet nie; ons het nie troubreuk gepleeg teen u verbond nie. Ons harte het nie teruggedeins nie, en ons treë het nie van u pad afgewyk nie. Maar U het ons verpletter deur van ons 'n plek te maak waar woestynjakkalse hou; U het ons met digte duisternis bedek. As ons die Naam van ons God vergeet het, ons hande na 'n vreemde god uitgestrek het, sou God dit nie ontdek nie? Hy is immers die Een wat hartsgeheime ken. Maar ter wille van U word ons die hele tyd vermoor, word ons as slagvee beskou. Word wakker! Waarom slaap U, my Heer? Staan op! Moet ons nie vir altyd verstoot nie. Waarom verberg U u gesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking? Want ons smelt weg in die stof, ons liggame kleef aan die grond. Staan op! Kom ons tot hulp en bevry ons op grond van u troue liefde. Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van die Koragiete. 'n Maskiel. 'n Liefdeslied. My hart is ontroer deur mooi woorde, ek dra my verse voor aan 'n koning. My tong is die pen van 'n vaardige skrywer. U is mooier as ander mense, guns vloei oor u lippe, daarom seën God u vir altyd. Gord u swaard aan die heup, o held – u majesteit en u luister! Seëvier in u glansrykheid! Trek op ter wille van waarheid, nederigheid en •geregtigheid! Laat u regterhand vir u ontsagwekkende dinge leer. U pyle is skerp in die hart van die koning se vyande; volke val onder u. U troon, o goddelike wese, is vir altyd en altyd, die septer van u heerskappy is 'n regverdige septer. U het •geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u metgeselle. Na mirre, adelhout en wildekaneel ruik al u klere; uit paleise van ivoor maak snaarinstrumente u bly. Die dogters van konings is versier met u juwele; aan u •regterkant staan die koningin, getooi in goud uit Ofir. Luister, dogter, kyk en gee aandag! Vergeet jou volk en die huis van jou vader. Dan sal die koning jou skoonheid onweerstaanbaar vind; want hy is jou heer en jy moet laag voor hom buig. Dogter van Tirus, met geskenke sal die rykes van die volk jou guns soek. In volle glorie wag die dogter van 'n koning binne, in haar uitrusting van goudbrokaat. In veelkleurig geweefde klere word sy na die koning gebring; jongmeisies, haar vriendinne, is haar gevolg, hulle word vir u ingebring. Met vreugderoepe en gejuig word hulle binnegelei, gaan hulle die koninklike troonsaal binne. U seuns sal die plekke van u vaders inneem, u sal hulle as •hoë amptenare aanstel in die hele land. Ek wil sorg dat u naam bekend bly deur alle geslagte heen, daarom sal mense u prys vir altyd en altyd. Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied. God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde. Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge wankel in die hart van die see nie. Sy waters kan maar woed, kan maar skuim, berge kan maar bewe in sy dreuning. Daar is 'n rivier – sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God, die heiligste woonplek van die Allerhoogste. God is in haar midde, sy sal nie wankel nie. God sal haar help wanneer die oggend aanbreek. Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel, Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder. Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Kom kyk na die dade van die Here, Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen, wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde. Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese; waens verbrand Hy in die vuur. “Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm. Al julle volke, klap hande! Juig tot eer van God met jubelkrete! Want die Here, die Allerhoogste, is ontsagwekkend, 'n groot koning oor die hele aarde. Hy onderwerp volke aan ons, nasies onder ons voete. Hy kies vir ons ons erfgrond, die trots van Jakob, wat Hy liefhet. Onder gejuig bestyg God die troon, die Here bestyg dit onder die geluid van 'n •ramshoring. Besing God, besing Hom! Besing ons koning, besing Hom! Want God is die koning van die hele aarde; sing 'n lied wat onderrig. God regeer oor nasies, God sit op sy •heilige troon. Die vooraanstaandes van volke kom bymekaar by die God van Abraham, want aan God behoort die skilde van die aarde. Hy is hoog verhewe. 'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete. Groot is die Here en besonder lofwaardig in die stad van ons God, sy •heilige berg. Indrukwekkend hoog, 'n vreugde vir die hele land is die berg Sion in die verre noorde van die stad van die groot Koning. God is in die vestings van die stad. Hy is bekend as 'n toevlugsoord. Want kyk, die konings het byeengekom, hulle het saam opgetrek. Die oomblik toe hulle dit sien, was hulle stomgeslaan; verskrik het hulle op die vlug geslaan. Vrees het hulle daar beetgepak, angs, soos 'n vrou wat geboorte gee. Met 'n oostewind het U handelskepe stukkend gebreek. Wat ons gehoor het, het ons ook ervaar in die stad van die Here, Heerser oor alle magte, in die stad van ons God: God het haar gevestig vir altyd. In u •tempel, o God, dink ons na oor u troue liefde. Soos u Naam, o God, so strek u lof tot aan die eindes van die aarde, u regterhand is vol •geregtigheid. Die berg Sion is verheug, die dogters van Juda juig oor u beslissings. Loop rondom Sion, gaan reg rondom haar; tel haar torings, kyk goed na haar verdedigingswal, bekyk haar vesting, sodat julle dit vir die toekomstige geslag kan vertel: Ja, hierdie God is ons God vir altyd en ewig; Hý sal ons lei vir ewig. Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm. Luister hierna, al julle volke, gee aandag, almal wat op aarde woon, geringes sowel as dié wat aansien het, ryk en arm saam. My mond sal wyse woorde uitspreek; waaroor my hart nadink, spreek van insig. Ek het 'n oop oor vir spreuke; onder lierspel sal ek my raaisel oplos. Waarom sou ek bang wees in dae van onheil wanneer die wandade van bedrieërs my omring, die wandade van hulle wat op hulle besittings vertrou en met hulle groot rykdom spog? Een familielid kan nooit 'n ander vrykoop nie, hy kan nie aan God die losprys vir hom betaal nie, want die vrykoopprys vir hulle lewens is te hoog en hy moet vir altyd daarvan afsien dat hy vir ewig kan leef en die graf nie sal sien nie. 'n Mens sien immers dat wyse mense sterf; saam met die dwaas en die onverstandige vergaan hulle en laat hulle besittings aan ander na. Hulle graf is hulle tuiste vir altyd, hulle woning van geslag tot geslag. Hulle noem stukke grond na hulleself, maar 'n mens met skatte is nie blywend nie; hy is net soos die diere – hulle gaan ten gronde; dit is hulle lewenspad, dié wat vol selfvertroue is, hulle einde, dié wat van hulle eie uitsprake hou. Soos kleinvee is hulle vir die •doderyk bestem, die dood is hulle herder, teen die môre heers opregtes oor hulle. Hulle liggame is bestem vir vertering deur die doderyk, ver van hulle indrukwekkende wonings. Maar God sal my lewe vrykoop uit die mag van die doderyk, ja, Hy sal my wegneem. Moenie bang wees as iemand ryk word, as hy die rykdom van sy huis vermeerder nie; want hy sal niks daarvan in sy dood saamneem nie, sy rykdom sal hom nie na benede volg nie. Al wens hy in sy lewe homself geluk en sê, “Hulle moet jou prys, want jy doen goed vir jouself,” sal hy by sy voorgeslagte aankom. Vir ewig sal hulle die lig nie sien nie. Maar 'n mens met skatte het nie insig nie; hy is net soos die diere – hulle gaan ten gronde. 'n Psalm. Van Asaf. Die God van die gode, die Here, het gepraat en die aarde opgeroep – van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Vanuit Sion, plek van volmaakte skoonheid, laat God sy lig straal. Ons God kom en Hy gaan nie stilbly nie; voor Hom brand 'n verterende vuur, rondom Hom woed 'n geweldige storm. Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: “Maak my getroue volgelinge vir my bymekaar, hulle wat by die offers my verbond hernu.” Die hemel maak sy geregtigheid bekend, want God, Hy is regter. “Luister tog, my volk, Ek wil my saak stel, Israel, Ek wil teen jou getuig: God, jou God, is Ek. Dit is nie oor jou offers wat Ek jou wil teregwys nie; jou •brandoffers is altyd voor My. Ek sal nie uit jou stal 'n bul vat, bokramme uit jou krale nie, want aan My behoort al die wild in die bos, die diere op 'n duisend berge. Ek ken al die voëls op die berge en die insekte van die veld is aan My bekend. As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? Offer dank aan God, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in 'n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Watter reg het jy om my voorskrifte op te sê en my verbond op jou lippe te neem? Jy is die een wat vermaning haat, en my woorde verwerp. As jy 'n dief sien, raak jy met hom bevriend, en met egbrekers hou jy jou op. Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie. Wie dankoffers bring, eer My en wie 'n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.” Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het. Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming. Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my. Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel. Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid. Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees. Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig. Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit! Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u •heilige Gees nie van my wegneem nie. Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat 'n gewillige gees my ondersteun. Ek wil oortreders u paaie leer, dat sondaars na U kan terugkeer. Red my van bloedskuld, o God, God wat my verlos, laat my tong juig oor u geregtigheid. My Heer, maak my lippe oop en my mond sal u lof verkondig. U vind immers geen vreugde in slagoffers nie, anders sou ek dit gee; •brandoffers aanvaar U nie. Offers aan God is 'n gebroke gees, 'n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie. Doen volgens u wil goed aan Sion, herbou die mure van Jerusalem. Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid – brandoffers en volledige offers – Dan sal daar op u altaar jong bulle geoffer word. Vir die •musiekleier. 'n Maskiel. Van Dawid. Toe Doëg, die Edomiet, gegaan en vir Saul berig gebring het. Hy het vir hom gesê: “Dawid het by die huis van Agimeleg aangekom.” Waarom spog jy oor 'n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. Jou tong beplan vernietiging, soos 'n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg. Jy hou meer van die slegte as van die goeie, van leuens meer as om te sê wat reg is. Jy hou van allerhande lasterlike woorde, van 'n tong wat bedrieg. God sal jou daarom vir goed afbreek Hy sal jou wegruk, jou wegskeur uit die tent; Hy sal jou uitpluk uit die land van die lewendes. Regverdiges sal dit sien en ontsag hê, oor hom sal hulle die spot dryf: “Kyk die sterk man! Hy het God nie sy toevlug gemaak nie, maar op sy groot rykdom vertrou. Hy soek toevlug in wat hom vernietig.” Maar ek is soos 'n welige olyfboom in God se huis; ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. In die teenwoordigheid van u getroue volgelinge vestig ek my hoop op u Naam, want dit is goed. Vir die •musiekleier. Op Magalat. 'n Maskiel. Van Dawid. Dwase sê in hulle hart: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. God kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek. Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos 'n mens brood eet? Hulle roep God nie aan nie. Dan oorval skrik hulle as daar niks te vrese is nie. Want God het die beendere van hulle wat jou beleër het, verstrooi. Jy laat hulle beskaamd staan, want God het hulle verwerp. Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer God die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees. Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel. Van Dawid. Toe die Sifiete gegaan en vir Saul gesê het: “Het Dawid dan nie by ons kom wegkruip nie?” O God, verlos my deur u Naam en verdedig my saak deur u groot krag. O God, hoor my gebed; luister na die woorde van my mond, want vreemdes het teen my opgestaan en gewelddadige mense soek my lewe. Hulle hou God nie voor oë nie. Kyk, God is vir my 'n helper, my Heer is die Een wat my lewe ondersteun. Hy sal my teenstanders vir hulle kwaad vergeld. Omdat U getrou is, vernietig hulle! Vrywillig wil ek offers aan U bring. Ek wil u Naam prys, Here, want dit is goed; ja, u Naam het my uit alle nood gered en ek kon op my vyande neerkyk. Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel. Van Dawid. O God, luister na my gebed, verberg U nie vir my smeekbede nie. Luister tog aandagtig na my en antwoord my. Klaend dwaal ek rond; ek is verward oor die geraas van vyande, oor die getier van goddeloses, want hulle laat onreg op my neerstort, en in toorn is hulle vyandig teenoor my. My hart krimp ineen in my binneste, doodsangs het my oorval. Vrees en bewing oorweldig my, 'n rilling trek deur my liggaam. Ek het gedink, het ek maar vlerke gehad soos 'n duif! Ek sou wegvlieg en 'n tuiste vind; ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug; ek sou in die woestyn oornag. Ek sou haastig vir my 'n skuilplek soek, weg van die rukwind, van die hewige storm. My Heer, verwar, verdeel hulle tonge, want in die stad sien ek net geweld en stryd. Dag en nag doen dit die rondte op die stadsmure, en binne die stad is daar onreg en geweld. Vernietiging is binne-in die stad, verdrukking en bedrog wyk nie van die stadsplein nie. Dit is immers nie 'n vyand wat my uittart nie – ek sou dit nog kon verduur; dit is nie my hater wat selfvoldaan is teenoor my nie; ek sou my vir hom kon versteek. Maar dat dit jy is, 'n mens soos ek, my boesemvriend en vertroueling – ons wat vertroulike gesprekke saam geniet het terwyl ons in die huis van God loop in die gedrang van mense! Mag die dood hulle onverhoeds betrap, mag hulle lewendig afdaal na die •doderyk; want boosheid is by hulle tuis, dit is in hulle midde. Ek, ek roep tot God, en die Here sal my verlos. In die aand, in die oggend en in die middag het ek gekla en gesteun; maar Hy het my stem gehoor. Met vrede koop Hy my lewe vry van 'n geveg wat teen my gerig is, al is hulle in hulle hordes teen my. God hoor en sal hulle verneder – Hy regeer immers van die voortyd af, – hulle by wie daar geen verandering is nie, en wat nie ontsag het vir God nie. Teen sy vriende het hy sy hand uitgesteek; hy het sy verbond geskend. Sy mond is gladder as botter, maar sy hart is die ene oorlog. Sy woorde is strelender as olie, maar dit is ontblote swaarde. Werp jou las op die Here; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie. U, o God, laat hulle afdaal in die put van die graf. Die manne van bloed en bedrog haal nie eers die helfte van hulle jare nie. Maar ek, ek vertrou op U. Vir die •musiekleier. Op “Die duif van die veraf •terebinte”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe die Filistyne hom in Gat gevang het. Wees my genadig, o God, want mense treiter my; die hele dag teister veglustige mense my. My teenstanders treiter my die hele dag, ja, baie veg teen my uit die hoogte. Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U. Op God – ek loof sy woord – op God vertrou ek. Ek sal nie bang wees nie; wat kan vlees en bloed aan my doen? Die hele dag verdraai hulle my woorde; teen my is al hulle kwaadwillige planne gerig. Hulle val my gedurig aan; hulle lê en wag. Hulle hou my spore dop terwyl hulle my lewe soek. Sal hulle, ondanks die onreg, vrykom? Werp mense neer in toorn, o God! U het self my lotgevalle opgeteken. Hou tog my trane in u leersak. Staan dit nie in u •boekrol nie? Dan sal my vyande terugdeins op die dag wanneer ek roep. Dit weet ek: God is vir my. Op God – ek loof sy woord – op die Here – ek loof sy woord – ja, op God vertrou ek. Ek is nie bang nie, wat kan 'n mens aan my doen? Op my, o God, rus die geloftes aan U. Ek sal dit nakom met •dankoffers aan U, want U het my lewe uit die dood weggeruk. Het U dan nie my voete van struikeling bewaar, sodat ek voor God kan leef in die lig van die lewe nie? Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe hy voor Saul in die grot in gevlug het. Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U skuil ek; in die skadu van u vlerke sal ek skuil totdat die vernietiging verby is. Ek roep na God, die Allerhoogste, na God, wat namens my vergeld. Hy sal uit die hemel hulp stuur en my verlos. Hy verwar hom wat my teister. God sal sy troue liefde en sy waarheid stuur. Ek is tussen leeus; ek lê tussen hulle wat mense verslind – hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde. Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde. 'n Net het hulle gespan vir my voete – hulle het my neerslagtig gemaak. Hulle het 'n vangkuil voor my gegrawe – hulle het self daarin geval. My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig. Ek wil sing, ek wil lofsing. Word wakker, my gemoed! Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak. Ek wil U dank onder die volke, my Heer, ek wil U besing onder die nasies; want groot, tot aan die hemel, reik u troue liefde; tot by die wolke is u waarheid. Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde. Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam. Magtiges, is julle werklik besig met regspraak, oordeel julle mense billik? Selfs in julle harte beoefen julle onreg; in die land maak die geweld van julle hande vir julle die pad skoon. Vanaf die moederskoot dwaal goddeloses af, vanaf hulle geboorte raak leuenaars die pad byster. Hulle gif is dieselfde as slanggif; hulle is soos 'n dowe horingslang wat sy ore toestop, wat nie luister na die besweerders se stem nie – hulle wat bedrewe is in die besweerkuns. O God, breek hulle tande in hulle monde, verbrysel die kake van die jong leeus, Here. Mag hulle verdwyn soos water wat wegvloei; mag Hy hulle vertrap soos gras. Mag hulle verdroog soos 'n slak wat in sy slym seil, soos misgeboortes van vroue wat nooit die son sien nie. Voordat hulle dit besef, is hulle soos dorings, soos steekdorings wat uitgeroei word, soos bossies wat die stormwind wegwaai. Die regverdige sal bly wees wanneer hy vergelding sien; hy sal sy voete afspoel in die bloed van die goddelose. Die mense sal sê: “Daar ís beloning vir die regverdige, daar ís 'n God wat reg laat geskied in die land.” Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe Saul mense gestuur het om die huis dop te hou en hom dood te maak. Red my van my vyande, my God; hou my buite die bereik van hulle wat teen my opstaan. Red my van hulle wat onreg pleeg en verlos my van mense wat bloed vergiet; want kyk, hulle lê my voor, sterkes val my aan. Nie omdat ek oortree of gesondig het nie, Here – sonder dat ek sondeskuld het, hardloop hulle en neem teen my stelling in. Word wakker, sodat U my te hulp kan kom; sien dit tog raak! U, Here God, Heerser oor alle magte, God van Israel, staan tog op om al die nasies tot verantwoording te roep; moenie genadig wees teenoor al die bose verraaiers nie. Hulle keer terug teen die aand; hulle gaan tekere soos honde en sluip in die stad rond. Kyk, uit hulle monde skuim woorde, daar is swaarde op hulle lippe: “Wie hoor dit?” Maar U, Here, U lag vir hulle; U dryf die spot met al die nasies. My Sterkte, aan U wil ek vashou. Ja, God is my toevlugsoord. Die God aan wie ek toegewy is, sal my tegemoetkom; God sal my laat neersien op my vyande. Moet hulle nie doodslaan nie, sodat my volk nie vergeet nie. Laat hulle rondswerf deur u krag, en bring hulle dan tot 'n val, my Heer, ons Skild. Hulle sondig met hulle monde, met die woorde op hulle lippe. Laat hulle verstrik raak in hulle hoogmoed oor die vervloeking en die leuens wat hulle vertel. Delg uit in woede, delg uit, sodat hulle nie bestaan nie. Dan sal mense tot by die uithoeke van die aarde weet: God heers in Jakob. Hulle keer terug teen die aand, hulle gaan tekere soos honde en sluip in die stad rond. Hulle dwaal rond op soek na kos; as hulle nie genoeg kry nie, grom hulle. Maar ek, ek sing van u krag. In die môre jubel ek oor u troue liefde, want U was vir my 'n toevlugsoord, 'n skuilplek op die dag van my nood. My Sterkte, ek wil U besing. Ja, God is my toevlugsoord, die God aan wie ek toegewy is. Vir die •musiekleier. Op “Narsing van getuienis”. 'n Miktaam. Van Dawid. Om te onderrig. Toe hy geveg het teen Aram-Naharajim en Aram-Soba, en Joab teruggekeer en twaalfduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het. O God, U het ons verstoot, ons uitmekaar geslaan. U was toornig. Herstel ons! U het die land geskud, dit oopgekloof. Maak sy breuke heel, want dit wankel. U het u volk moeilike tye laat beleef; U het ons wyn laat drink wat ons laat steier. U het aan hulle wat vir U ontsag het, 'n banier gegee waaronder hulle byeen kan kom, weg van die boogskutters. Sodat u geliefdes gered kan word – verlos tog met u regterhand en antwoord ons! God self het in sy heiligdom verklaar: “Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel, die vallei van Sukkot gaan Ek afmeet. Aan My behoort Gilead, aan My Manasse; Efraim is 'n beskutting vir my kop, Juda is my heerserstaf. Moab is my waskom, op Edom gooi Ek my sandaal; oor My moet jy juig, Filistea.” Wie sal my bring na 'n versterkte stad? Wie sal my lei tot by Edom? Is dit nie U, o God, wat ons verstoot het nie? U, o God, trek nie meer saam met ons leërs uit nie. Kom ons te hulp teen teenstanders – die hulp van mense is nutteloos. Met God tree ons dapper op – Hý sal ons teenstanders vertrap. Vir die •musiekleier. Met snarespel. Van Dawid. Hoor my klaagroep, o God, luister aandagtig na my gebed. Van die einde van die aarde roep ek na U, wanneer my moed my begewe. Lei my na 'n rots wat vir my te hoog is; want U is vir my 'n skuilplek, 'n versterkte toring teen die vyand. Ek wil vir altyd in u tent vertoef, ek wil skuil onder die beskutting van u vlerke. U is immers die Een wat luister na my geloftes, o God; U gee 'n erfdeel aan hulle wat vir u Naam ontsag het. Vermeerder tog die dae van die koning se lewe, mag sy lewensjare geslagte lank duur, mag hy altyd voor God regeer. Voorsien toewyding en waarheid, laat dit oor hom wag hou! Só wil ek u Naam vir altyd besing, om my geloftes dag ná dag te betaal. Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. 'n Psalm. Van Dawid. Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie. Hoe lank nog gaan julle 'n man bly aanval, vermoor julle almal hom – asof hy 'n muur is wat oorhel, 'n tuinmuur wat omgestoot word? Ja, hulle beplan om hom af te stoot van sy hoë plek, hulle hou van leuens. Met die mond seën hulle, maar in hulle binneste vloek hulle. Vind rus by God alleen, my siel, want op Hom is my hoop gevestig. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie. By God lê my verlossing, my eer. My sterk rots, my skuilplek, vind ek in God. Vertrou te alle tye op Hom, o volk, stort julle hart voor Hom uit. God is vir ons 'n skuilplek. Net 'n asemteug is die mens, onbetroubaar is mense; op 'n skaal weeg hulle byna niks, saam is hulle ligter as 'n asemteug. Moet op afpersing nie staatmaak, op plunder julle ydele hoop nie vestig nie. Rykdom, as dit toeneem – moet julle hart nie daarop sit nie. Een saak het God bevestig, twee, wat ek gehoor het: Krag is by God; by U, my Heer, is daar troue liefde, want U self beloon 'n mens volgens sy dade. 'n Psalm. Van Dawid. Toe hy in die woestyn van Juda was. God, U is my God, na U soek ek; my •siel dors na U, my liggaam smag na U in 'n droë, uitgeputte land sonder water. So het ek uitgesien na U in die heiligdom, om u krag en glorieryke teenwoordigheid te ervaar, want u troue liefde is beter as die lewe. My lippe sal U roem; so sal ek U prys in my lewe; in u Naam sal ek my hande ophef. Asof van binnevet en die vetste dele word ek versadig; en met jubelende lippe bring my mond lof as ek aan U dink op my slaapplek, as ek in die •nagwake oor U prewel. Want U was vir my tot hulp, en in die skadu van u vlerke jubel ek. My diepste wese is aan U verknog; u regterhand ondersteun my. En daardie mense wat daarop uit is om my lewe te verwoes, hulle sal die onderste dele van die aarde binnegaan. Hulle sal aan die mag van die swaard uitgelewer word, die prooi van jakkalse sal hulle word. Die koning sal hom in God verbly; elkeen wat by Hom sweer, sal in Hom roem. Want hulle wat leuens verkondig se monde sal gesnoer word. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Luister, o God, na my stem as ek kla; hou my lewe veilig teen die verskrikking van die vyand. Hou my weg van die kring van kwaaddoeners, weg van die onrus van hulle wat onreg pleeg, dié wat hulle tonge so skerp maak soos 'n swaard, wat aanlê met hulle pyle van bitter woorde om uit wegkruipplekke op 'n onskuldige te skiet. Onverwags skiet hulle op hom. Hulle is nie bang nie. Hulle praat mekaar moed in met bose woorde; hulle spreek af om strikke te stel. Hulle sê: “Wie sal dit raaksien? Sal mense 'n bose opset ondersoek? Ons is gereed; dit is 'n fyn beplande set, en 'n mens se binneste en hart is onpeilbaar.” Maar onverwags skiet God hulle met 'n pyl; hulle is gewond! Dit bring hulle elkeen tot 'n val. Hulle tonge getuig teen hulle. Almal wat hulle sien, sidder. Dan word alle mense met vrees vervul en maak God se dade bekend; hulle kry insig in sy werk. Regverdiges sal hulle in die Here verheug en by Hom skuil. Almal wie se harte opreg is, sal in Hom roem. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. 'n Lied. Aan U kom 'n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. U wat gebede hoor – na U moet alle mense kom. Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredings. Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u •tempel. U antwoord ons in geregtigheid met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos – U, die vertroude tot aan al die eindes van die aarde en die verste seë, die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, wat die gedreun van die seë stilmaak, die gedreun van hulle golwe, die rumoer van volke. Daarom het die bewoners van die eindes van die aarde ontsag vir u tekens. U laat 'n gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan. U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, want so berei U die grond voor: U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. U kroon u goeie jaar; u spore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, die heuwels omgord hulle met 'n gejuig. Die weivelde klee hulle met kleinvee; die valleie tooi hulle met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing. Vir die •musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, almal op aarde! Besing die eer van sy Naam; betoon eer met 'n loflied aan Hom. Sê vir God: “Hoe ontsagwekkend is u dade! Vanweë die grootheid van u krag, veins u vyande onderdanigheid aan U. Almal op aarde buig voor U in aanbidding. Hulle besing U, hulle besing u Naam.” Kom kyk na God se werke – ontsagwekkend is sy dade onder die mense. Hy het 'n see in droë grond verander. Hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar kon ons ons in Hom verheug, Hy wat ewig heers deur sy mag, wie se oë die nasies deurkyk. Hardkoppiges moet hulleself nie verhef nie. Prys ons God, volke; laat die klank van sy loflied opklink – Hy wat aan ons lewe gee, nie toelaat dat ons voete swik nie. Ja, U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter. U het ons in 'n vangnet laat beland, 'n las op ons skouers gelê. U het mense oor ons koppe laat ry; ons het deur vuur en water gegaan, maar U het ons na oorvloed uitgelei. Ek sal u huis binnegaan met •brandoffers; ek sal aan U my geloftes betaal wat my lippe uitgespreek en my mond beloof het toe ek in die nood was. Brandoffers van vetgemaakte skape sal ek aan U bring, saam met die offerrook van ramme. Ek sal beeste saam met bokke offer. Kom luister, almal wat vir God ontsag het, sodat ek kan vertel wat Hy vir my gedoen het. Met my mond het ek Hom aangeroep; lofprysing was gereed op my tong. Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar, sou my Heer nie geluister het nie. Maar God het geluister; Hy het ag geslaan op die klank van my gebed. God moet geprys word, Hy wat my gebed nie afgewys het, sy troue liefde van my nie weerhou het nie. Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Psalm. 'n Lied. Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy die lig van sy aangesig by ons laat skyn. Mag U pad op die aarde bekend wees, u verlossing onder al die nasies. Mag volke U prys, o God, mag al die volke U prys. Mag nasies bly wees en jubel, want U oordeel volke billik; en nasies, mag U hulle op die aarde lei. Mag volke U prys, o God, mag al die volke U prys. Die aarde het sy opbrengs gelewer. Mag God, ons God, ons seën. Mag God ons seën, sodat al die uithoeke van die aarde vir Hom ontsag sal hê. Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied. God staan op, sy vyande spat uiteen, sy haters vlug van Hom weg. Soos rook weggewaai word, so waai U hulle weg; soos was smelt voor 'n vuur, so verdwyn die goddeloses voor God. Maar die regverdiges is bly, hulle jubel voor God, hulle juig van vreugde. Sing vir God, besing sy Naam! Verheerlik Hom wat op die wolke ry – Here is sy Naam – jubel voor Hom! 'n Vader vir vaderloses, 'n regter vir weduwees, is God in sy •heilige woonplek. God laat eensames weer in 'n huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppiges woon in 'n verskroeide land. O God, toe U voor u volk uitgegaan het, toe U vooruitgestap het in die wildernis, het die aarde geskud. Ook die hemel het gedrup voor God, die Een van Sinai, voor God, die God van Israel. Milde reën het U, o God, laat uitsak oor u erfdeel; wat uitgeput was, het U laat herleef – u woonplek waarin hulle woon. In u goedheid het U dit gereedgemaak vir magteloses, o God. My Heer het 'n boodskap uitgestuur; die vroue wat die goeie tyding bring, is 'n groot skare: “Die konings met leërs vlug, hulle vlug! Die mooi vroue tuis verdeel die buit. As julle tussen die saalsakke gaan rus – daar is duiwe, hulle vlerke is met silwer bedek en hulle penvere met geelgroen goud.” Wanneer die Almagtige die konings in die land uitmekaar jaag, sneeu dit op die berg Salmon. Massiewe bergreeks, bergrug van Basan, bergreeks met pieke, bergrug van Basan, waarom kyk julle met afguns, bergreekse met pieke, na die berg wat God gekies het as sy woonplek? Dit is ook waar die Here vir altyd sal woon. Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom. U het opgevaar na die hoogte om daar te woon, Here God, nadat U gevangenes weggevoer het en skatplig gevorder het by mense, selfs by hardkoppiges. My Heer moet geprys word! Dag ná dag dra Hy ons, God is ons verlossing. God is vir ons die God van verlossing, by die Here, my Heer, is daar uitkoms uit die dood. God sal beslis die koppe van sy vyande verpletter, die harige hoofde van hulle wat in sondeskuld volhard. My Heer het gesê: “Uit Basan sal Ek hulle terugbring, Ek sal hulle terugbring uit die dieptes van die see, sodat jy jou voete in bloed kan afspoel, en die tonge van jou honde deel kan kry aan die vyande.” Mense sien u optogte, o God, die optogte van my God, my Koning, by die heiligdom: Vooraan is die sangers, daarna dié met snaarinstrumente tussen jongmeisies wat tamboeryne slaan. Prys God in die byeenkomste, die Here by die bron van Israel. Daar is Benjamin, die jongste, hulle heerser, die leiers van Juda in hulle menigte, die leiers van Sebulon, die leiers van Naftali. Jou God het krag vir jou beskik. Toon u krag, o God, U wat in ons belang opgetree het vanuit u •tempel bo Jerusalem. Vir U sal konings geskenke bring. Bestraf die gediertes van die riete, die trop bulle tussen die kalwers van volke wat mense vertrap vir stukke silwer. Jaag volke uitmekaar wat graag oorlog voer. Bronsware moet uit Egipte kom. Die Kussiete sal dit vinnig aandra vir God. Koninkryke van die aarde, sing vir God; besing my Heer, Hom wat ry deur die oeroue, hoogste hemel. Kyk, Hy laat sy stem, 'n magtige stem, weerklink. Erken die krag van God, dat Hy hoog verhewe oor Israel is en dat sy krag in die wolke lê. God wek ontsag in jou heiligdomme, Israel; die God van Israel, Hy gee krag en sterkte aan die volk. God moet geprys word! Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van Dawid. Verlos my, o God, want water het tot by my keel gekom. Ek het weggesink in diep modder, en daar is geen vastrapplek nie; ek het in diep water beland, en die vloed gaan my meesleur. Ek is uitgeput van my geroep, my keel is al hees. My oë is vermoeid van wag op my God. Meer as die hare op my kop is hulle wat my sonder rede haat. Hulle wat my wil vernietig, is ontelbaar, hulle wat my ten onregte haat. Wat ek nie geroof het nie, moet ek nou teruggee. O God, U self ken my dwaasheid; my skuld is nie vir U verborge nie. Laat hulle wat op U wag nie deur my toedoen beskaamd staan nie, Here my Heer, Heerser oor alle magte. Laat hulle wat U soek nie deur my toedoen verneder word nie, o God van Israel. Dit is immers oor U dat ek bespotting moet verduur, dat my gesig met skaamte bedek is. Ek is vervreem van my broers, 'n vreemdeling vir my moeder se kinders. want die hartstog vir u huis het my verteer. Die bespotting waarmee hulle U bespot, moes ek verduur. Toe ek getreur het terwyl ek vas, is ek bespot. Toe ek rouklere aangetrek het, het ek vir hulle 'n spotnaam geword. Dié wat in die stadspoort sit, dryf die spot met my, en die liedjies van dronkaards ook. Maar ek rig my gebed tot U, Here, in 'n tyd van welwillendheid. O God, antwoord my met u betroubare verlossing, op grond van u oorvloedige troue liefde. Red my uit die modder; moenie dat ek wegsink nie. Ek wil vrykom van my haters, van die diep water. Laat vloedwater my nie meesleur nie, die diepte my nie verswelg nie. Laat die put nie sy mond bo my toemaak nie. Antwoord my, Here, want u troue liefde is goed; draai na my in u groot ontferming. Moenie u gesig vir u dienskneg verberg nie, want ek is in die nood – antwoord my gou. Bly tog naby my, bevry my lewe; koop my vry, want ek het vyande. U ken self die bespotting, smaad en vernedering wat ek verduur; voor U staan al my teenstanders. Bespotting het my hart gebreek, ek is swak. Ek het medelye verwag, maar tevergeefs; mense om my te troos, maar ek kon niemand vind nie. Hulle het gif in my kos gesit, en vir my dors het hulle my asyn laat drink. Mag hulle tafel voor hulle 'n vangnet word, 'n valstrik vir hulle vriende. Mag hulle oë dof word, sodat hulle nie kan sien nie. Laat hulle heupe voortdurend meegee! Stort u verontwaardiging oor hulle uit; laat u brandende toorn hulle inhaal. Mag hulle kamp verlate wees; mag daar in hulle tente geen bewoner wees nie. Want dié wat deur U geslaan is, word deur hulle agtervolg, en oor die pyn van dié wat deur U gewond is, het hulle die monde vol. Voeg sondeskuld by hulle sondeskuld, laat hulle nie toegang hê tot u •geregtigheid nie. Mag hulle uitgewis word uit die •boekrol van die lewe; mag hulle nie saam met die regverdiges opgeteken word nie. Ek is magteloos en verkeer in pyn; mag u verlossing, o God, my beskerm. Ek wil die Naam van God loof met 'n lied; ek wil sy Naam groot maak met 'n danklied. Dit sal vir die Here aanneemliker wees as beeste, as bulle met horings en gesplete hoewe. Die verdruktes sien dit; hulle sal bly wees. Julle wat God raadpleeg, mag julle harte leef, want die Here luister na die behoeftiges; Hy minag nie sy gevangenes nie. Hemel en aarde moet Hom loof, oseane en alles wat daarin beweeg; want God gaan Sion verlos, Hy gaan die stede van Juda herbou. Hulle sal daar woon en die land besit. Die nageslag van sy diensknegte sal dit erf; hulle wat sy Naam liefhet, sal daarin woon. Vir die •musiekleier. Van Dawid. Ter herinnering. O God, red my, Here, kom my gou te hulp! Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd en verleë staan. Laat hulle wat my teenspoed begeer, terugdeins en verneder word. Laat hulle wat sê, “Aha! Aha!” omdraai oor hulle skande. Mag almal wat U soek, hulle verheug en in U bly wees; mag hulle wat u verlossing liefhet, voortdurend sê: “God is groot!” Maar ek is magteloos en behoeftig. O God, haas U na my – U is my hulp, my bevryder! Here, moenie talm nie! By U, Here, skuil ek; laat my nie vir altyd beskaamd staan nie. Red my en bevry my deur u •geregtigheid; draai u oor na my en verlos my. Wees vir my 'n rots, 'n skuiling waarheen ek altyd kan gaan, wat U beskik vir my verlossing. Ja, U is my rotsvesting en my bergskuiling. My God, bevry my uit die hand van goddeloses, uit die greep van hulle wat onreg doen en verdruk. Want U is my hoop, my Heer; Here, van my jeug af stel ek my vertroue in U. Op U steun ek van die moederskoot af; uit die ingewande van my moeder het U my losgeknip. U alleen loof ek deurentyd. Vir baie was ek 'n slegte teken, maar U was my sterk vesting. My mond is vol lof vir U, die hele dag lank vol van u heerlikheid. Moet my nie verwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat wanneer my kragte afneem nie. Want my vyande praat oor my; hulle wat my dophou, maak saam planne en sê: “God het hom verlaat; agtervolg hom en gryp hom, want niemand kan hom red nie.” O God, bly nie ver van my af nie; my God, kom my gou te hulp. Laat hulle wat my lewe bedreig, beskaamd staan. Laat hulle wat my onheil soek, in skande en vernedering gehul wees. Maar ek, ek sal voortdurend hoop, al u lof steeds meer besing. My mond sal van u geregtigheid vertel, van u verlossingsdade, die hele dag lank, al is die getal bo my begrip. Ek sal ingaan en getuig van die magtige dade van die Here, my Heer; ek sal getuig van u geregtigheid, net van U alleen. O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe maak ek u wonderdade bekend. Selfs tot in die ouderdom en grysheid, o God, moet U my nie verlaat nie, totdat ek aan die nageslag die mag van u arm bekend gemaak het, aan almal wat kom, u mag. U geregtigheid, o God, strek tot aan die hemel, U wat grootse dade verrig het. O God, wie is soos U? U wat my baie benoudhede en rampe laat ervaar het, U sal my weer lewend maak, my weer uit die watermassas van die wêreld laat opkom. U moet tog my aansien verhoog, omdraai en my troos. Dan sal ook ek U dank met begeleiding van harpsnare, vir u getrouheid, my God; ek wil U besing met begeleiding van 'n lier, o •Heilige van Israel. My lippe sal jubel wanneer ek U besing, ja, my hele wese, wat U vrygemaak het. Ook my tong sal die hele dag oor u geregtigheid prewel, omdat daardie mense beskaamd staan, omdat hulle wat my onheil soek, in die skande gekom het. Van Salomo. O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning. Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid. Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid. Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter. Hulle sal vir U ontsag hê solank die son en die maan nog daar is, vir geslagte lank. Mag die koning wees soos reën wat neerdaal op 'n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek. In sy tyd sal regverdiges floreer, daar sal vrede in oorvloed wees tot die maan nie meer daar is nie. Mag hy heers van see tot see, van die Rivier tot aan die uithoeke van die aarde. Voor hom sal die woestynbewoners kniel, en sy vyande sal stof lek. Die konings van Tarsis en die eilande sal belasting betaal; die konings van Skeba en Seba sal skatplig lewer. Al die konings sal diep voor hom buig, al die nasies sal hom dien; want hy sal behoeftiges wat om hulp roep, uitred, ook magteloses en mense wat nie helpers het nie. Hy sal deernis hê met hulpeloses en behoeftiges; die lewens van behoeftiges sal hy bevry. Van onderdrukking en geweld sal hy hulle lewe vrykoop. Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë. Mag hy lank lewe! Mense sal vir hom van die goud van Skeba gee; hulle sal voortdurend vir hom bid en hom die hele dag deur seën toewens. Mag die land oortrek wees met graan, die are golwend oor die bergtoppe soos die Libanon. Mense in die stede sal in bloei staan soos die plante van die land. Mag sy roem vir altyd duur, sy naam voortleef solank die son bestaan. Mense sal wens dat hulle so geseënd is soos hy; al die nasies sal hom gelukkig noem. Die Here God, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat wonders doen, net Hy alleen. Sy luisterryke Naam moet vir ewig geprys word; mag sy heerlikheid die hele aarde vul. •Amen, amen. Die gebede van Dawid, seun van Isai, eindig hier. 'n Psalm. Van Asaf. God is waarlik vir Israel goed, vir hulle wat rein harte het. Maar ek, my voete het amper gegly my treë was amper wankelrig. Want ek het verwaande mense beny; ek het die voorspoed van goddeloses gesien. Hulle het immers tot hulle dood geen sorge nie; en hulle liggame is vet. Aan die sorge van sterflinge het hulle nie deel nie, en hulle word nie geteister saam met gewone mense nie. Daarom versier hoogmoed hulle nekke, bedek 'n kleed van geweld hulle. Van vet peul hulle oë uit, die versinsels van hulle hart oorskry alle perke. Smalend onderhandel hulle met bose bedoelings; uit die hoogte dreig hulle met afpersing. Hulle rek hulle monde teen die hemel, en laat hulle tonge gaan oor die aarde. Daarom draai sy volk hierheen. Wie vol is, word deur hulle uitgepers, en hulle sê: “Hoe sal God dit weet? Is daar dan kennis by die Allerhoogste?” Kyk, dit is hoe goddeloses is: Immer sorgeloos vermeerder hulle hulle rykdom. Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Ek is die hele dag geteister; my kastyding was elke oggend opnuut daar. As ek sou dink, ek wil soos hulle praat, kyk, dan sou ek ontrou wees aan die nageslag van u kinders. Ek het toe probeer om dit te verstaan, maar het dit as vermoeiend beskou, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het. Ek het insig gekry in hulle uiteinde. Waarlik, U laat hulle op gladde plekke beland, U bring hulle tot 'n val oor hulle geknoei. Hoe word hulle in 'n oogwink 'n skrikbeeld, hoe kom hulle volledig tot 'n einde deur verskrikking! Asof dit 'n droom is waaruit mens wakker word, verag U hulle beeld, my Heer, wanneer U ontwaak. Toe my hart verbitterd was en my niere gepyn het, was ek dom en sonder begrip; ek was 'n dier teenoor U. En tog was ek altyd by U; U het my regterhand vasgehou. Deur die raad wat U gee, lei U my, en daarna neem U my eervol weg. Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie. My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan ten gronde; U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed. Ek het my Heer, die Here, my skuilplek gemaak, sodat ek van al u werk kan vertel. 'n Maskiel. Van Asaf. Waarom, o God, verstoot U, smeul u toorn vir altyd teen die kleinvee van u weiplek? Dink aan u volk wat byeen is, wat U in die voortyd gekoop het, wat U as stam, as u eiendom, losgekoop het; dink aan die berg Sion, waar U gewoon het. Klim tog op na die ewige puinhope. Die vyand het alles verwoes in die heiligdom. U teenstanders het gebrul binne-in u ontmoetingsplek; hulle het hulle baniere as oorwinningstekens opgerig. Dit is bekend: Toe hulle saam met die fynhout byle teen die trappe op gevat het, het hulle ook die paneelwerk alles afgestroop met handbyle en breekysters. Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot op die grond het hulle die woonplek van u Naam ontheilig. Hulle het in hulle hart gesê: Ons moet alles gelyktydig vernietig. Hulle het al die ontmoetingsplekke van God in die land verbrand. Ons sien nie meer ons tekens nie, daar is nie meer 'n profeet nie; en niemand by ons weet hoe lank nog nie. Hoe lank, o God, gaan die teenstander nog die spot dryf, gaan die vyand u Naam vir ewig verag? Waarom hou U u hand, u regterhand, terug? Trek dit uit die vou van u kleed! Maak 'n einde hieraan! God is my koning van die vroegste tye af, Hy wat verlossingsdade verrig hier op aarde. Dit is U wat met u krag die see geskud het, die koppe van seemonsters op die water verpletter het, die koppe van die Leviatan verbrysel het, dit as kos vir woestynbewoners gegee het. U het fontein en stroom oopgebreek; U het standhoudende riviere laat opdroog. Aan U behoort die dag; ook die nag behoort aan U. U het die maan en die son gevestig. U het al die grense van die aarde vasgestel; somer en winter, U het dit gevorm. Dink daaraan dat die vyand die spot dryf, Here, dat 'n dwase volk u Naam verag. Moet tog nie die lewe van u tortelduif aan wilde diere oorgee nie; die lewens van u magteloses – moet dit nie vir ewig vergeet nie. Hou die verbond in die oog, want die donker plekke van die wêreld is vol nedersettings van geweld. Laat die onderdruktes nie in vernedering terugkeer nie. Die magteloses en behoeftiges sal u Naam loof. Staan tog op, o God, verdedig u regsaak! Dink daaraan dat U die hele dag deur dwase gespot word. Moenie die stem van u teenstanders vergeet nie, die rumoer wat voortdurend opklink van hulle wat teen U opstaan. Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie.” 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied. Ons prys U, o God, ons prys U; u Naam is naby. Mense vertel van u wonderwerke. God sê: “Wanneer die tyd aanbreek wat Ek bepaal het, sal Ek self met billikheid oordeel. Die aarde en al sy bewoners kan wankel – Ek self het sy pilare gevestig.” Vir verwaande mense sê ek: “Moenie verwaand wees nie.” Vir die goddeloses: “Moenie horings oplig nie. Moenie julle horings teen die hemel lig nie; moenie verwaand, met 'n stywe nek, praat nie. Want verheffing kom nie van waar die son opkom of van waar dit ondergaan nie, en ook nie van die woestyn af nie. Nee, God is regter: Die een verneder Hy, die ander verhef Hy.” Ja, daar is 'n beker in die hand van die Here met wyn wat gegis het en vol kruie is. Hy skink daaruit. Al die goddeloses van die aarde sal dit moet drink, dit tot die droesem moet ledig. En ek, ek sal dit altyd verkondig, ek sal die God van Jakob besing, wat sê: “Al die horings van goddeloses sal Ek afbreek, maar die horings van regverdiges sal opgelig word.” Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied. God is in Juda bekend, in Israel is sy Naam groot. In Salem was sy hut, sy skuilplek in Sion. Daar het Hy brandpyle uit die boog, skild en swaard en steekspies, stukkend gebreek. Stralend was U, magtiger as die berge wat die prooi moes wees. Dié met dapper harte het self die buit geword; hulle het die ewige slaap ingegaan. Nie een van die bekwame manne kon 'n hand lig nie. Vanweë u dreiging, o God van Jakob, het die bemanning van strydwaens en die perde in 'n beswyming geraak. U – ontsagwekkend is U! Wie kan voor U bly staan wanneer U toornig is? Uit die hemel het U die oordeel aangekondig. Die aarde het gevrees en stil geword toe God opstaan om die vonnis te vel, om al die verdruktes van die land te verlos. Ja, die woede teen mense strek U tot lof; met die oorblyfsel van die woedebuie omgord U Uself. Lê geloftes af aan die Here julle God, en kom dit na. Almal wat rondom Hom is, moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende. Hy ontneem •leiers die moed – Hy wat vreesaanjaend is vir die konings van die aarde. Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep hard na God, ek roep om hulp. Ek roep hard na God, sodat Hy my moet hoor. In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar. Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees. U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie. Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare. Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek. Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot 'n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Toe het ek gesê: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.” Ek sal die Here se dade onthou, ja, ek wil u wonders van vroeër onthou. Ek sal oor al u werke mymerend prewel, oor u handelinge wil ek nadink: O God, u weg is •heilig. Wie is so 'n groot god soos God? U is die God wat wonders doen, U het u krag onder die volke bekend gemaak. U het u volk met die krag van u arm losgekoop – die kinders van Jakob en Josef. Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, dit het ineengekrimp; ja, die •oerwaters het gesidder. Wolke het water uitgegiet, donderwolke het gedreun, ja, u pyle het heen en weer geflits. Die geluid van u donderweer was in die stormwind, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het gesidder en gebeef. Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar. U het, deur die hand van Moses en Aäron, u volk soos kleinvee gelei. 'n Maskiel. Van Asaf. My volk, luister na my onderrig; spits julle ore vir die woorde uit my mond. Ek gaan my mond oopmaak vir 'n spreuk, ek gaan raaisels uit die verlede na vore haal. Wat ons gehoor het en weet, wat ons voorouers aan ons vertel het, mag ons nie vir ons kinders wegsteek nie. Aan die volgende geslag sal ons die roemryke dade van die Here vertel: van sy mag en die wonders wat Hy gedoen het. Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob, 'n wet vasgestel in Israel: Wat Hy ons voorouers beveel het, moet aan hulle kinders bekend gemaak word, sodat die volgende geslag dit sal weet, die kinders wat nog gebore moet word, sal opstaan en dit aan hulle kinders vertel, en sodat húlle weer hulle vertroue in God kan stel, God se dade nie vergeet nie en kan hou by sy bevele. Hulle mag nie soos hulle voorouers wees nie – 'n hardkoppige en opstandige geslag, wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het teruggeval op die dag van die geveg. Hulle het nie God se verbond nagekom nie; en sy wet het hulle geweier om te volg. Hulle het sy dade vergeet, sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor die oë van hulle voorouers het Hy wonders gedoen in Egipteland, op die vlakte van Soan. Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal. Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur. Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was. Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere. Maar hulle het steeds voortgegaan om teen Hom te sondig, om in die dorre streek teen die Allerhoogste opstandig te wees. Hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer. Hulle het hulle teen God uitgespreek; hulle het gesê: “Kan God 'n tafel dek in die woestyn? Kyk, Hy het 'n rots geslaan en water het uitgestroom, spruite het gevloei. Sou Hy ook brood kon gee of vleis voorberei vir sy volk?” Daarom, toe die Here dit hoor, het Hy woedend geword, en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob. Ook het sy toorn opgevlam teen Israel, omdat hulle nie in God geglo het nie, en nie op sy verlossing vertrou het nie. Hy het die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak. Hy het manna om te eet op hulle laat reën, koring van die hemel het Hy aan hulle gegee, die brood van engele – mense het dit geëet. Padkos het Hy vir hulle gestuur – tot versadiging toe. Hy het die oostewind in die hemel laat losbars; en deur sy krag die suidewind laat waai. Hy het vleis soos stof op hulle laat neerreën, vlieënde voëls soos die sand van die oseane. Hy het dit binne-in sy kamp laat val, reg rondom sy verblyfplek. Hulle het geëet en was heeltemal versadig; Hy het wat hulle begeer het, vir hulle gebring. Hulle het nog nie weggedraai van wat hulle begeer het nie, hulle kos was nog in hulle monde, toe laai God se toorn al teen hulle op. Hy het onder hulle vettes 'n slagting aangerig en die jong manne van Israel op hulle knieë gedwing. Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy hulle dae laat eindig in nietigheid, en hulle jare in verskrikking. Wanneer Hy 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle Hom geraadpleeg; hulle het teruggedraai en God gesoek. Hulle het onthou dat God hulle rots is, dat God, die Allerhoogste, hulle losser is. Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong. Hulle harte was nie standvastig teenoor Hom nie; hulle was nie getrou aan sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig; Hy bedek hulle sondeskuld; Hy delg hulle nie uit nie. Hy hou dikwels sy toorn terug en laat nie sy woede ten volle ontwaak nie. Hy dink daaraan dat hulle vlees is, net maar 'n asemteug wat gaan en nie weer terugkeer nie. Hoe dikwels was hulle nie opstandig teen Hom in die woestyn nie, het hulle Hom nie gegrief in die wildernis nie. Hulle het God weer uitgedaag, en die •Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie onthou wat sy hand gedoen het nie, dié dag toe Hy hulle vrygekoop het van die teenstander, toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders op die vlakte van Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander, ook hulle strome – hulle kon glad nie daarvan drink nie. Hy het steekvlieë onder hulle losgelaat, en dit het hulle geteister; ook paddas, en dit het verwoesting onder hulle aangerig. Hy het hulle opbrengs aan kaalvretersprinkane gegee, die vrug van hulle arbeid aan treksprinkane. Hy het hulle wingerdstokke deur hael vernietig, en hulle wildevyebome deur 'n verwoestende vloed. Hy het hulle beeste aan hael oorgegee, en hulle vee aan weerligstrale. Hy het sy brandende toorn onder hulle ingestuur: gramskap, vervloeking en benoudheid – 'n hele afdeling boodskappers van onheil. Hy het die weg gebaan vir sy toorn; Hy het hulle nie van die dood weggehou nie, maar hulle lewens aan pessiektes uitgelewer. Hy het elke •eersgeborene in Egipte getref, die eerstelinge van hulle manlike krag in die tente van Gam. Maar soos kleinvee het Hy sy volk laat wegtrek. Toe het Hy hulle soos 'n kudde in die woestyn gelei, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie verskrik was nie. Hulle vyande is deur die see oorstroom. Hy het hulle na sy •heilige grondgebied gebring, na die berg wat sy regterhand verwerf het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf. Hy het wat aan hulle behoort, met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel, en die stamme van Israel in húlle tente laat woon. Maar hulle was opstandig en het God, die Allerhoogste, uitgedaag; hulle het nie sy bepalings nagekom nie. Hulle was afvallig en ontrou soos hulle voorouers; hulle het verander in 'n slap boog. Hulle het Hom uitgetart met hulle offerhoogtes, met hulle afgodsbeelde het hulle Hom ontstel. Toe God dit hoor, het Hy woedend geword en het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel by Silo prysgegee, die tent waarin Hy tussen mense gewoon het. Hy het sy krag in ballingskap oorgegee, sy heerlikheid in die hande van teenstanders. Hy het sy volk aan die swaard uitgelewer; Hy het woedend geword vir sy eiendom. Hulle jong manne is deur vuur verteer, en hulle jongmeisies is nie met liedere geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het my Heer asof uit die slaap wakker geword, soos 'n held uit die roes van wyn. Hy het sy teenstanders teruggedryf en ewige bespotting oor hulle gebring. Hy het die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie gekies nie. Maar Hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom soos die hoogste hemele gebou, soos die aarde, wat Hy vir altyd gevestig het. Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies, en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas, Israel, sy eiendom. Dawid het hulle met 'n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei. 'n Psalm. Van Asaf. O God, nasies het in u eiendom ingegaan, hulle het u •heilige •tempel verontreinig; hulle het Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u diensknegte vir die voëls van die hemel as kos gegee, die vleis van u getroue volgelinge vir die wilde diere van die aarde. Hulle het hulle bloed soos water uitgestort om Jerusalem, en daar was niemand wat hulle begrawe het nie. Ons het die bespotting van ons bure geword, die hoon en spot van hulle rondom ons. Hoe lank nog, Here? Gaan U vir ewig toornig bly; sal u heilige jaloesie soos 'n vuur bly brand? Stort u gramskap uit oor die nasies wat U nie ken nie, oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob verteer, sy weiding verwoes. Moet tog nie ons vroeëre sondeskuld teen ons hou nie; laat u ontferming ons gou bereik, want ons het baie min geword. Help ons, o God wat ons verlos, ter wille van die eer van u Naam. Red ons en bedek ons sondes, ter wille van u Naam. Waarom moet die nasies sê: “Waar is julle God?” Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is. Laat die gesug van gevangenes U bereik; laat hulle, gedoem tot die dood, deur u groot mag gespaar bly. Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer! Ons is u volk en die skape van u weiding; ons sal U vir altyd prys. Van geslag tot geslag sal ons vertel van die lof wat U toekom. Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm. Herder van Israel, luister tog! U wat Josef soos kleinvee lei, U wat oor die gerubs troon – laat skyn tog u lig voor Efraim, Benjamin en Manasse! Laat u mag ontwaak en kom tot ons redding. O God, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. Here, God, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan u woede nog smeul teen die gebed van u volk? U het hulle brood van trane laat eet; U het hulle trane in oormaat laat drink. U het ons 'n bron van stryd gemaak vir ons bure, ons vyande dryf met ons die spot. O God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. U het in Egipte 'n wingerdstok uitgetrek; U het nasies verdryf en hom geplant. U het voor hom skoongemaak; hy het wortel geskiet en die land vol gerank. Berge is deur sy skadu oordek, die magtige seders deur sy takke. Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, en sy lote tot by die Rivier. Waarom het u sy tuinmuur afgebreek, sodat almal wat daar verbygaan, sy vrugte pluk? Wildevarke uit die bos vreet hom kaal; bosvarke uit die veld vreet hom op. O God, Heerser oor alle magte, kom tog terug! Kyk uit die hemel en sien dit raak! Versorg hierdie wingerdstok, die steggie wat u regterhand geplant het, die spruit wat U vir Uself grootgemaak het. Hy is met vuur verbrand, afgekap. Laat hulle vergaan weens die bedreiging van u teenwoordigheid. Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het. Ons sal nie van U wyk nie. Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep. Here, God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. Vir die •musiekleier. Op Haghittiet. Van Asaf. Jubel tot eer van God, ons krag, juig tot eer van die God van Jakob. Begin die begeleiding, speel op tamboeryne, op lieflike liere en op harpe. Blaas •ramshorings met nuwemaan, met volmaan vir ons feesdag; want dit is 'n vaste instelling vir Israel, 'n beslissing van die God van Jakob. As 'n bepaling het Hy dit neergelê vir Josef toe Hy uitgetrek het teen Egipteland. In 'n taal wat ek nie ken nie, hoor ek: “Ek het die las van sy skouer verwyder; sy hande is vry van die dramandjie. Toe daar nood was, het jy geroep, en Ek het jou uitgered. Ek het jou geantwoord uit die beskutting van die donderwolk; Ek het jou getoets by die water van Meriba. “Luister, my volk, Ek wil jou waarsku, Israel; as jy maar net na My sal luister: Daar mag by jou nie 'n vreemde god wees nie, jy mag nie voor 'n uitlandse god in aanbidding buig nie. Ek, die Here, is jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het. Maak jou mond wyd oop, sodat Ek dit kan vul. “Maar my volk het nie na My geluister nie, Israel wou My nie gehoorsaam nie. Ek het hulle aan die verstoktheid van hulle harte oorgelaat; hulle het hulle eie raad gevolg. As my volk maar net na My wou luister, as Israel maar my paaie wou volg! Ek sou hulle vyande summier verneder, teen hulle teenstanders sou Ek my hand draai.” Hulle wat die Here haat, sal voor Hom onderdanigheid veins; dit is hulle lot vir altyd. Maar Hy sal Israel met die beste koring voed. “Uit 'n rots sal Ek jou met heuning versadig.” 'n Psalm. Van Asaf. God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak: “Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan magteloses en armes. Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses. “Hulle weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel. “Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal. Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.” Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies. 'n Lied. 'n Psalm. Van Asaf. O God, moet tog nie stilbly nie; moet U nie doof hou nie en moenie stil wees nie, o God. Want kyk, u vyande is rumoerig, u haters loop kop omhoog. Teen u volk maak hulle listig planne, hulle beraadslaag teen dié wat deur U beskerm word. Hulle het gesê: “Kom ons wis hulle uit as 'n nasie sodat die naam Israel nie meer onthou word nie.” Ja, hulle het eendragtig saamgespan; teen U het hulle 'n verdrag gesluit: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die nageslag van Hagar, Gebal, Ammon en Amalek, Filistea en ook die inwoners van Tirus. Ook Assirië het by hulle aangesluit; hulle het die nageslag van Lot die hand gereik. Maak met hulle soos met Midian, soos met Sisera, soos met Jabin by die spruit Kison. Hulle is uitgedelg by En-Dor, hulle het mis geword vir die grond. Maak met hulle, met hulle vooraanstaandes, soos met Oreb en Seëb, met al hulle stamhoofde soos met Seba en Salmunna, wat gesê het: “Laat ons die weivelde van God in besit neem.” My God, maak hulle soos tolbosse, soos kaf voor die wind. Soos vuur 'n bos verbrand, soos 'n vlam berge aan die brand steek, so moet U hulle agtervolg met u stormwind, hulle met u storm in verwarring bring. Bedek hulle gesigte met skande, sodat hulle kan vra na u Naam, Here. Laat hulle vir altyd beskaamd staan en verskrik wees; laat hulle in die skande kom en ten gronde gaan. Dan sal hulle weet dat net U, wie se Naam Here is, die Allerhoogste is oor die hele wêreld. Vir die •musiekleier. Op Haghittiet. Van die Koragiete. 'n Psalm. Hoe lieflik is u woning, Here, Heerser oor alle magte! My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en liggaam roep uit na die lewende God. Selfs 'n mossie vind 'n tuiste, en 'n swaeltjie haar nes waarin sy haar kleintjies neerlê, by u altare, Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God! Gelukkig is hulle wat in u huis woon! Hulle loof U gedurig. Gelukkig is mense wie se krag in U lê! Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes: Trek hulle deur die Baka-vallei, maak hulle daarvan 'n landskap ryk aan fonteine; die vroeë reën maak dit selfs vol waterpoele. Hulle gaan van krag tot krag; elkeen verskyn voor God in Sion. Here, God, Heerser oor alle magte, hoor tog my gebed, luister tog, God van Jakob! O God, sien ons skild raak, slaan ag op u gesalfde; want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend daarbuite. Ek wag liewer op die drumpel van die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. Ja, 'n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie. Here, Heerser oor alle magte, gelukkig is mense wat op U vertrou! Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm. Here, U was u land goedgesind; U het die lot van Jakob verander. U het die sondeskuld van u volk vergewe; U het al hulle sonde bedek. U het al u gramskap teruggehou; U het afgesien van u brandende toorn. Herstel ons nou weer, o God wat ons verlos; maak 'n einde aan u ergernis teen ons. Gaan U vir altyd teen ons toornig wees? Gaan u toorn voortduur van geslag tot geslag? U, wil U ons nie maar weer lewend maak, sodat u volk hulle in U kan verheug nie? Here, laat ons weer u troue liefde ervaar, u verlossing – skenk dit aan ons! Ek wil hoor wat God, die Here, sê, want Hy praat oor vrede vir sy volk en sy getroue volgelinge. Hulle moet net nie terugkeer na dwaasheid nie. Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het, sodat sy heerlikheid in ons land 'n tuiste kan hê. Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar, •geregtigheid en vrede omhels mekaar. Waarheid sal uit die aarde spruit, geregtigheid uit die hemel neerkyk. Daarby sal die Here gee wat goed is, en ons land sal sy opbrengs lewer. Geregtigheid gaan voor Hom uit en baan vir sy voetstappe die weg. 'n Gebed. Van Dawid. Here, draai u oor, antwoord my, want ek is magteloos en behoeftig. Beskerm my lewe, want ek is 'n getroue volgeling. Verlos u dienskneg wat op U vertrou; U is my God. Wees my genadig, my Heer, want na U roep ek die hele dag lank. Maak die hart van u dienskneg bly, want na U, my Heer, hunker ek. U, my Heer, is immers goed en vergewensgesind, en oorvloedig in troue liefde teenoor almal wat na U roep. Here, hoor tog my gebed en gee tog aandag aan my smeekgebede. In die tyd van my nood roep ek na U, want U antwoord my. Daar is niemand soos U onder die gode nie, my Heer, en niks soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal u Naam eer. Want groot is U en U doen wonders; U alleen is God. Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê. My Heer, my God, ek wil U prys met my hele hart; ek wil u Naam vir altyd eer, want u troue liefde teenoor my is groot: U het my lewe weggeruk uit die •doderyk daar onder. O God, vermeteles het teen my opgestaan; 'n klomp geweldenaars soek my lewe en hou U nie voor oë nie. Maar U, my Heer, U is 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid. Draai na my en wees my genadig; gee u krag aan u dienskneg, en verlos die seun van u diensmeisie. Gee my 'n teken van goedheid sodat hulle wat my haat, dit kan sien en beskaamd staan. U, Here, het my immers gehelp en getroos. Van die Koragiete. 'n Psalm. 'n Lied. Die fondamente wat Hy gelê het, rus op •heilige berge. Die Here het die poorte van Sion liewer as al die wonings van Jakob. Glorieryke dinge word oor jou gesê, stad van God: “Ek sal Rahab en Babilonië noem onder dié wat My erken, ja, Filistea en Tirus saam met Kus onder dié wat daar gebore is.” En oor Sion sal daar gesê word: “Man vir man is in haar gebore, en die Allerhoogste self hou haar in stand.” Die Here teken in die •boekrol van volke op: “Hierdie een is daar gebore.” Terwyl hulle dans, sing hulle: “Al my bronne is in jou.” 'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete. Vir die •musiekleier. Op Magalat. Om te sing. 'n Maskiel. Van Heman, die Esragiet. Here, God wat my verlos, bedags roep ek om hulp, snags bly my hulpgeroep voor U. Laat my gebed U bereik, draai u oor na my klaagroep; want ek het genoeg gehad van rampe. My lewe is by die •doderyk; ek word gereken by dié wat afdaal in die put. Ek het geword soos 'n sterk man sonder krag, vrygelaat onder die dooies, soos gesneuweldes wat in 'n graf lê, aan wie U nie meer dink nie; hulle wat afgesny is van u hand. U het my in die diepste put geplaas, in donker plekke, in die dieptes. U woede rus swaar op my; met al u golwe onderdruk U my. U het my bekendes van my verwyder, U het my iets afstootliks gemaak vir hulle. Ek is opgesluit en kan nie uitkom nie; my oë verdof van ellende. Ek roep na U, Here, elke dag, ek strek my handpalms na U uit. Kan U aan dooies 'n wonder doen? Of skimme, kan hulle opstaan, kan hulle U prys? Word daar in die graf gepraat oor u troue liefde, oor u betroubaarheid in die onderwêreld? Is u wonders bekend in die duisternis, en u geregtigheid in die land van vergetelheid? En ek, na U roep ek om hulp, Here, elke oggend kom my gebed voor U. Waarom, Here, verstoot U my, verberg U u gesig vir my? Ek is magteloos, in doodsgevaar van my jeug af; verslae dra ek u verskrikkinge. Oor my het die gloed van u toorn gebreek, u verskrikkinge vernietig my. Die hele dag omring dit my soos water, dit omsluit my heeltemal. U het geliefdes en vriende van my verwyder; my vertroueling is die duisternis. 'n Maskiel. Van Etan, die Esragiet. Oor die troue liefde van die Here wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak. Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig; in die hemel hou U u trou in stand. “Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het aan my dienskneg, Dawid, met 'n eed belowe, ‘Vir altyd hou Ek jou nageslag in stand; van geslag tot geslag het Ek jou troon gevestig. ’ ” Die hemel moet u wonders prys, Here; ja, u trou in die byeenkoms van heiliges. Want wie in die uitspansel kan langs die Here gestel word? Wie onder die hemelwesens is aan die Here gelyk – 'n uiters gedugte God in die kring van die heiliges, en gevrees deur almal om Hom? Here, God van alle magte, wie is so magtig soos U, Here? U trou omring U; U heers oor die deining van die see. Wanneer die golwe styg, bring U hulle tot bedaring. U, U het die deurboorde Rahab verpletter, met u sterk arm het U u vyande verstrooi. Aan U behoort die hemel, ook die aarde behoort aan U. Die wêreld en alles daarop – U, U het dit gegrondves. Die noorde en die suide – U, U het dit geskep. Tabor en Hermon jubel in u Naam. U het 'n magtige arm; u hand is sterk, u regterhand is verhewe. Reg en •geregtigheid is die grondslag van u troon; troue liefde en waarheid gaan U tegemoet. Gelukkig is die volk wat uitroepe van vreugde ken, wat in die lig van u teenwoordigheid loop, Here! In u Naam juig hulle die hele dag, in u geregtigheid roem hulle; want U is hulle kragtige sieraad. Deur u aanvaarding het U ons sterk gemaak. Want aan die Here behoort ons skild, aan die •Heilige van Israel behoort ons koning. U het destyds in 'n visioen 'n belofte gemaak aan u getroue volgelinge. U het gesê: “Ek het hulp verleen aan 'n held, Ek het 'n jong man uit die volk verhoog. Ek het Dawid, my dienskneg, gevind; met my heilige olie het Ek hom gesalf, hom by wie my hand bestendig sal wees; ja, my arm sal hom sterk maak. Vyande sal hom nie onverhoeds betrap nie, en skurke sal hom nie verdruk nie. Sy teenstanders sal Ek voor hom verpletter, en sy haters sal Ek platslaan. My getrouheid en troue liefde sal met hom wees, en in my Naam sal hy sterk word. Ek sal sy hand op die see lê, op die riviere sy regterhand. Hy, hy sal my aanroep, ‘U is my Vader, my God, en die rots wat my verlos.’ Ek sal hom dan •eersgeborene maak, die hoogste van die konings van die aarde. Vir altyd sal Ek vir hom my troue liefde handhaaf; en my verbond sal bestendig wees vir hom. Ek sal sy nageslag vir altyd vestig, en sy troon, solank as die hemel bestaan. “As sy seuns van my wet afwyk, volgens my beslissings nie leef nie; as hulle my vaste voorskrifte ontheilig, my bevele nie nakom nie, sal Ek hulle oortreding met slae straf en hulle sondeskuld met houe. Maar my troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek nie, en Ek sal nie my trou verloën nie. Ek sal my verbond nie skend nie en wat oor my lippe gegaan het, nie verander nie. Vir eens en vir altyd het Ek by my heiligheid gesweer; Ek sal nie vir Dawid lieg nie: Sy nageslag sal altyd daar wees en sy troon soos die son voor My, soos die maan wat altyd standhou – 'n betroubare getuie aan die hemelruim.” Maar U self het hom verstoot en verwerp, U was woedend vir u gesalfde. U het die verbond met u dienskneg opgehef, sy kroon tot in die grond ontheilig. U het al sy skermmure afgebreek, van sy versterkte stede ruïnes gemaak. Almal wat daar verbygaan, het hom geplunder; hy het 'n bespotting geword vir sy bure. U het die regterhand van sy teenstanders hoog gelig. U het al sy vyande bly gemaak. U, o Rots, het ook sy swaard teen hom gedraai; U het hom nie staande gehou in die stryd nie. U het sy glans laat verdof en sy troon, dié het U teen die grond gegooi. U het die dae van sy jeug kortgeknip, hom in skaamte gehul. Hoe lank nog, Here? Gaan U Uself vir ewig verberg, sal u woede soos 'n vuur bly brand? Dink daaraan – wat is my lewensduur? Om watter sinlose rede het U alle mensekinders geskape? Watter jong man leef en sien nie die dood nie; wie kan sy lewe aan die mag van die •doderyk laat ontkom? Waar is u troue liefde van vroeër, my Heer, wat U in u trou met 'n eed beloof het aan Dawid? My Heer, dink aan die bespotting van u diensknegte wat ek teen my bors dra; dink aan al die baie volke wat die spot dryf – aan u vyande, Here, wat die spot dryf met u gesalfde waar hy ook al gaan. Die Here moet vir ewig geprys word! Amen, amen. 'n Gebed. Van Moses, die man van God. My Heer, U was vir ons 'n woning van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is en U die aarde en die bewoonbare wêreld voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig is U God. U laat sterflinge terugkeer tot stof; U sê net: “Keer terug, mensekinders!” Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister wanneer dit verbygaan, – 'n wagbeurt in die nag. U vee hulle weg in die slaap. In die oggend is hulle soos gras wat opskiet, wat in die oggend bloei en uitspruit, en teen die aand verlep en verdroog. Ja, ons het vergaan onder u toorn, deur u woede word ons verskrik. U het ons sondeskuld voor U geplaas, ons geheime sondes in die lig van u teenwoordigheid. Want al ons dae gaan verby onder u gramskap, ons voltooi ons jare soos 'n sug. Die dae van ons lewensjare – dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe; ja, dit gaan gou verby, en ons vlieg weg. Wie ken die krag van u toorn? U gramskap is net so groot soos die ontsag vir U. Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons 'n hart vol wysheid kan verwerf. Keer terug, Here! Hoe lank nog? Ontferm U oor u diensknegte. Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees. Maak ons bly vir net so lank as wat U ons verdruk het, as die jare waarin ons teenspoed beleef het. Mag u werk vir u diensknegte duidelik word, en u glansryke dade vir hulle kinders. Mag die goedheid van my Heer, ons God, oor ons wees. En ons handewerk, hou dit vir ons in stand, ja, ons handewerk, hou dit in stand. Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sê vir die Here: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” Ja, Hy is die Een wat jou red uit die net van die voëlvanger, van die dodelike pessiekte. Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. 'n Skild en 'n skans is sy trou. Jy sal nie bang wees vir die verskrikking van die nag, vir 'n pyl wat oordag vlieg nie, vir 'n pessiekte wat in die donker rondloop, vir die epidemie wat helder oordag verwoes nie. Daar kan duisend langs jou val, en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie. Jy sal maar net toekyk – die vergelding van goddeloses sal jy sien. Ja, U, Here, is my skuilplek. Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: Onheil sal jou nie oorval nie en 'n plaag sal nie naby jou tent kom nie, want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen 'n klip stamp nie. Op leeus en horingslange sal jy trap, jong leeus en slange sal jy vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. Met 'n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” 'n Psalm. 'n Lied vir die Sabbatdag. Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te besing, Allerhoogste; om in die môre u troue liefde te verkondig, en u trou in die nagte – met tiensnarige instrumente, met harpe en die speel van liere. Want U maak my bly met u werk, Here, oor u handewerk jubel ek. Hoe groot is u werke, Here, hoe uitermate diep u gedagtes! 'n Dom mens weet nie, en 'n dwaas verstaan dit nie: Wanneer goddeloses soos onkruid opskiet en almal wat onreg pleeg, gedy – is dit net om vir ewig uitgedelg te word. Maar U is vir ewig hoog verhewe, Here. Ja, kyk, u vyande, Here, ja, kyk, u vyande gaan ten gronde; dié wat onreg pleeg, word verstrooi. Maar U het my horings hoog gelig soos dié van 'n buffel. Suiwer olie is oor my uitgegiet. My oog kyk neer op my teenstanders, op hulle wat teen my opstaan; my oor hoor met vreugde van die kwaaddoeners. Regverdiges – soos palmbome skiet hulle op, soos seders op die Libanon groei hulle hoog. Hulle is geplant in die huis van die Here; in die voorhowe van ons God blom hulle. In die gryse ouderdom gedy hulle nog steeds; hulle is weelderig en blaarryk, sodat hulle kan verkondig: “Regverdig is die Here, my rots, en daar is geen ongeregtigheid by Hom nie.” Die Here regeer; Hy is met majesteit beklee. Die Here beklee Hom, met krag omgord Hy Hom. Ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. U troon staan vas van vroeg af; U is van ewigheid af. Seestrome het hulle verhef, Here, seestrome het hulle stem verhef, seestrome verhef hulle golfslag. Magtiger as die gedreun van baie waters, as die branders van die see, is die Here, magtig in die hoogte. U bepalings is baie betroubaar; vir u huis is heiligheid gepas, Here, tot in lengte van dae. O God wat vergeld, Here, God wat vergeld, laat u lig skyn. Verhef U, regter van die aarde, gee hoogmoediges hulle verdiende loon. Hoe lank sal goddeloses, o Here, hoe lank sal goddeloses jubel? Hulle laat woorde onbeskaamd uitborrel; almal wat onreg pleeg, prys hulleself aan. Hulle verpletter u volk, Here, hulle verdruk u erfdeel. Hulle maak weduwees en •vreemdelinge dood, hulle vermoor vaderlose kinders. Dan sê hulle nog: “Die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie op nie.” Sien dit tog in, julle onverstandiges onder die volk! En dwase, wanneer word julle wys? Hy wat die oor inplant, sal Hy nie kan hoor nie, of Hy wat die oog vorm, sal Hy nie kan sien nie? Hy wat nasies vermaan, sal Hy nie straf nie, Hy wat aan mense kennis oordra? Die Here ken mense se gedagtes, dat dit nietigheid is. Gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here, vir wie U leer uit u wet, om aan hom verligting te gee in dae van onheil, totdat 'n graf gegrawe is vir goddeloses. Ja, die Here sal sy volk nie in die steek laat nie; sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie. Want die regspraak sal weer regverdig wees en almal met opregte harte sal dit steun. Wie sal vir my opstaan teen kwaaddoeners? Wie sal vir my in die bres tree teen hulle wat onreg pleeg? As die Here nie my hulp was nie, sou ek spoedig in die stilte gewoon het. As ek dink my voet gaan swik, dan ondersteun u troue liefde my, Here. Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op. Kan die setel van vernietiging wat die wet skade aandoen, aan U verbonde wees? Hulle span saam teen die lewe van regverdiges, hulle verklaar onskuldige bloed skuldig. Maar die Here het vir my 'n toevlugsoord geword, my God het my rotsskuiling geword. En Hy sal hulle onreg na hulle laat terugkeer, met hulle eie kwaad sal Hy hulle vernietig; die Here ons God sal hulle vernietig. Kom, laat ons voor die Here jubel, laat ons juig tot eer van die rots wat ons verlos. Laat ons tot Hom nader met dankliedere, met lofgesange juig tot sy eer. Want die Here is 'n groot God, 'n groot Koning bo al die gode, in wie se hand die dieptes van die aarde is, en aan wie die kruine van die berge behoort, aan wie die see behoort. Ja, Hy het dit gemaak, en die droë grond met sy hande gevorm. Gaan in, laat ons in aanbidding buig en kniel, laat ons op ons knieë staan voor die Here, ons Maker. Want Hy is ons God en ons is die volk wat Hy laat wei, die kleinvee van sy hand. As julle vandag maar net na sy stem wou luister! “Moenie julle harte verhard soos by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn, waar julle voorouers My versoek het, My beproef het, selfs nadat hulle my dade gesien het nie. Veertig jaar lank het Ek 'n weersin gehad in daardie groep mense, en Ek het gesê, ‘'n Volk met harte wat dwaal, is hulle, en hulle ken nie my paaie nie – hulle oor wie Ek in my toorn gesweer het: “Hulle sal my rusplek nie binnegaan nie!” ’ ” Sing vir die Here 'n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! Sing vir die Here, prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom. Gee eer aan die Here, familiegroepe van volke! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Sê onder die nasies: “Die Here regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.” Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here. Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in •geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou. Die Here regeer, laat die aarde juig; laat al die afgeleë eilande bly wees. Wolke en diepe duisternis omring Hom, reg en •geregtigheid is die grondslag van sy troon. Vuur gaan voor Hom uit en rondom Hom verbrand dit sy teenstanders. Sy weerligstrale verlig die aarde, die wêreld sien dit en sidder. Berge smelt soos was voor die Here, voor die Heer van die hele wêreld. Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy majesteit. Almal wat gesnede beelde dien, wat spog met nikswerd afgode, staan beskaamd. Buig in aanbidding voor Hom, alle gode! Sion hoor dit en is bly, die dogters van Juda juig oor u oordele, Here. Want U, Here, is die heel hoogste bo die hele aarde; U is ver verhewe bo alle gode. Julle wat die Here liefhet, moet die kwaad haat. Hy beskerm die lewe van sy troue volgelinge; uit die hand van goddeloses red Hy hulle. Lig is gesaai vir die regverdiges, vreugde vir hulle met opregte harte. Verbly julle in die Here, regverdiges, en prys sy •heilige, gevierde Naam. 'n Psalm. Sing vir die Here 'n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Sy regterhand, sy •heilige arm, het Hom bygestaan. Die Here het sy verlossing bekend gemaak; voor die oë van die nasies het Hy sy •geregtigheid geopenbaar. Hy het sy troue liefde, sy getrouheid teenoor die huis van Israel, onthou. Al die uithoeke van die aarde het die verlossing deur ons God gesien. Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom, besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang, op trompette saam met die klank van •ramshorings. Juig voor die Koning, die Here. Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid. Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder! Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke. Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys – “•Heilig is Hy!” – en die krag van die Koning, Hy wat die reg liefhet. Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob; U het dit gedoen. Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: “Heilig is Hy!” Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord. Uit 'n wolkkolom het Hy met hulle gepraat. Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. Here, ons God, U self het hulle geantwoord. U was vir hulle 'n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld. Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God. 'n Psalm. Vir lofprysing. Juig tot eer van die Here, o ganse aarde! Dien die Here met blydskap, kom in sy teenwoordigheid met 'n gejubel. Erken dat die Here God is; Hy het ons gemaak; aan Hom behoort ons, sy volk, die kleinvee wat Hy laat wei. Gaan sy poorte binne met lofprysing, sy voorhowe met 'n loflied; loof Hom, prys sy Naam. Want die Here is goed, vir ewig duur sy troue liefde, van geslag tot geslag sy trou. Van Dawid. 'n Psalm. Oor troue liefde en oor regspraak wil ek sing; U, Here, wil ek besing. Ek wil my toespits op 'n onberispelike lewenswyse. Wanneer sal ek dit bereik? Ek sal met 'n opregte hart leef in my huis. Ek sal nie iets boos voor my oë verdra nie. In die pleeg van wandade het ek 'n weersin; dit mag nie aan my kleef nie. 'n Vals hart moet van my wegbly; van boosheid wil ek niks weet nie. Wie sy medemens in die geheim belaster, hom sal ek vernietig. Hovaardige oë en 'n hoogmoedige hart, dit kan ek nie verdra nie. Ek is op die uitkyk vir betroubares in die land, sodat hulle by my kan bly; wie 'n onberispelike lewenswyse handhaaf, hulle mag my dien. Daar sal niemand in my huis woon wat bedrog pleeg nie. Wie leuens vertel, sal nie voor my oë standhou nie. Elke môre sal ek al die goddeloses in die land vernietig, om so almal wat onreg pleeg, uit die stad van die Here uit te roei. 'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort. Here, hoor tog my gebed! Laat my hulpkreet U bereik! Moet tog nie u gesig vir my verberg in my tyd van nood nie. Draai u oor na my in die tyd wanneer ek roep; antwoord my gou! Want my dae eindig in rook, my gebeente word verskroei asof in 'n vuurherd. My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid, ja, ek vergeet om my brood te eet. Vanweë my harde gekla is ek net vel en been. Ek is soos 'n bontkraai in die woestyn; ek het geword soos 'n naguiltjie op puinhope. Ek lê wakker; ek het geword soos 'n eensame voël op 'n dak. Die hele dag dryf my vyande die spot met my; dié wat met my die gek skeer, gebruik my naam in verwensings. Want stof eet ek soos brood, en wat ek drink, meng ek met trane, vanweë u vervloeking en u grimmigheid; ja, U het my opgetel en neergegooi. My dae is soos 'n skaduwee wat lank word, en ek, soos onkruid verdroog ek. Maar U, Here, U heers vir ewig; u gevierde Naam duur van geslag tot geslag. U self sal opstaan, U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom. Haar klippe is immers kosbaar vir u diensknegte, hulle is begaan oor haar puin. Nasies sal ontsag hê vir die Naam van die Here, en al die konings van die aarde vir u majesteit, wanneer die Here Sion herbou en Hy in sy majesteit verskyn. Hy sal Hom wend na die gebed van die brandarmes; Hy sal hulle gebed nie minag nie. Dit moet neergeskryf word vir 'n volgende geslag, sodat die volk wat geskep word, die Here sal loof met die woorde: “Die Here het afgekyk uit sy hoë heiligdom; uit die hemel het Hy die aarde beskou, om die gesug van gevangenes te hoor, om dié wat gedoem was tot die dood, te bevry, om in Sion die Naam van die Here te verkondig en sy lof in Jerusalem, wanneer volke byeenkom, ja, koninkryke, om die Here te dien.” Hy het op die lewenspad my krag gebreek, Hy het my dae kortgeknip. Ek sê: “My God, moet my nie wegneem teen die helfte van my lewensdae nie. Van geslag tot geslag duur u jare. Voor alle tye het U die aarde gevestig; die hemel is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt; soos 'n bokleed vervang U hulle, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare sal nie tot 'n einde kom nie.” Die kinders van u diensknegte sal hier bly woon, hulle nageslag sal gevestig wees in u teenwoordigheid. Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos 'n arend word jou jeug dan weer nuut. Die Here handhaaf geregtigheid, die regte van almal wat verdruk word. Hy het sy weë aan Moses geopenbaar, aan die Israeliete sy dade. Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde; Hy beskuldig nie vir ewig nie, en bly nie vir altyd toornig nie. Hy behandel ons nie ooreenkomstig ons sonde nie en vergeld ons nie ooreenkomstig ons sondeskuld nie; want so hoog as wat die hemel bo die aarde is, so troon sy troue liefde uit bo dié wat vir Hom ontsag het. So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat vir Hom ontsag het; want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons maar stof is. 'n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos 'n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die troue liefde van die Here is van altyd af en vir ewig oor hulle wat vir Hom ontsag het, en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders, vir hulle wat sy verbond hou, en vir hulle wat sy opdragte in gedagte hou, om dit uit te voer. Die Here het in die hemel sy troon gevestig, en sy heerskappy strek oor alles. Prys die Here, julle wat sy boodskappers is, sterk helde wat sy woord uitvoer deur sy bevel te gehoorsaam. Loof die Here, al sy hemelse magte, sy dienaars wat sy wil volbring. Loof die Here, alles wat Hy gemaak het, op al die plekke waar Hy heers! Loof die Here, o my siel! Loof die Here, o my siel! Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek. U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg; wat winde sy boodskappers maak, vlammende vuur sy dienaars; wat die aarde op sy fondamente vestig dat dit vir altyd en ewig nie wankel nie. Met •oerwater het U dit soos met 'n bokleed bedek; tot bo-oor die berge het die waters gestaan. Weens u dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van u donder op die vlug geslaan. Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het. 'n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie. Dit is U wat fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur, en gee al die diere van die veld water; die wilde donkies les hulle dors. Langs die strome is die voëls van die hemel tuis, tussen die digte blare sing hulle. U is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers; uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig. Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring: wyn wat 'n mens se hart bly maak, olie om die gesig mee blink te maak en brood wat 'n mens se hart versterk. Die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het, waar voëls nesmaak en ooievaars in sipresse hulle tuiste het. Die hoë berge is vir die klipbokke, die rotsskeure is 'n skuilplek vir dassies. Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan. U laat die duisternis aanbreek en dit word nag, wanneer al die diere van die bos rondsluip. Die jong leeus brul vir prooi, om hulle kos van God te vra. As die son opkom, keer hulle terug en gaan rus in hulle lêplekke. Mense gaan uit vir hulle dagtaak, vir hulle werk tot die aand toe. Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel. Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond 'n nuwe voorkoms. Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke, Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook. Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan. Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here. Mag sondaars van die aarde af verdwyn en goddeloses nie meer bestaan nie. Loof die Here, o my siel! Halleluja! Prys die Here, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend. Sing vir Hom, besing Hom! Praat met oorgawe oor al sy wonderwerke. Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees. Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op. Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond – nageslag van Abraham, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy is die Here ons God; oor die hele wêreld geld sy beslissings. Hy onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het, vir duisend geslagte, wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste voorskrif, aan Israel as 'n ewige verbond, met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.” Toe hulle nog min in getal was, baie min, en hulle •vreemdelinge in die land was, het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk. Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys: “Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.” Hy het hongersnood uitgeroep oor die land; elke stok vir brood het Hy gebreek. Hy het iemand voor hulle uit gestuur; as 'n slaaf is Josef verkoop. Mense het sy voete in boeie geklem, 'n yster is om sy nek gesit tot die tyd toe sy woord vervul is. Die woord van die Here het hom gelouter. Die koning het 'n boodskap gestuur en hy is losgelaat; die heerser van volke het hom vrygelaat. Hy het hom heer oor sy huis gemaak, en heerser oor alles wat hy besit, om sy •hoë amptenare na willekeur te beperk, en sy oudstes wysheid te leer. Israel het in Egipte aangekom, Jakob was 'n •vreemdeling in die land van Gam. Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak; Hy het hulle magtiger gemaak as hulle teenstanders, wie se harte Hy verander het om sy volk te haat, om slu op te tree teen sy diensknegte. Hy het sy dienskneg Moses gestuur, ook Aäron wat Hy uitgekies het. Hulle het onder hulle sy aangekondigde tekens uitgevoer, en wonders in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak – was hulle dan nie opstandig teen sy woorde nie? Hy het hulle water in bloed verander, hulle vis laat doodgaan. Hulle land was oortrek met paddas, tot in die slaapkamers van hulle koninklikes. Hy het gepraat, en daar het steekvlieë gekom, muggies in hulle hele gebied. Hy het hulle reënbuie hael gemaak, met weerligstrale in hulle land. Dit het hulle wingerde en vyebome platgeslaan, die bome in hulle gebied verniel. Hy het gepraat, en daar het treksprinkane gekom, ontelbare voetgangers. Dit het al die plante in hulle land kaal gevreet; dit het die opbrengs van hulle landerye opgevreet. Hy het al die •eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle manlike krag. Hy het sy volk laat wegtrek met silwer en goud; onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie. Egipte was bly toe hulle wegtrek, want vrees vir sy volk het hulle oorval. Hy het 'n wolk uitgesprei as bedekking, en 'n vuur om die nag te verlig. Hulle het gevra, en Hy het kwartels laat kom; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig. Hy het 'n rots oopgemaak, en water het gevloei; dit het soos 'n rivier deur die dorre streek geloop. Ja, Hy het sy •heilige belofte aan Abraham, sy dienskneg, onthou. Hy het sy volk laat wegtrek met vreugde, sy uitverkorenes met jubelkrete. Hy het aan hulle die landstreke van volke gegee. Wat nasies met moeite verkry het, het hulle in besit geneem, sodat hulle sy vaste voorskrifte kan nakom en by sy wette kan hou. Halleluja! Halleluja! Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Wie kan die magtige dade van die Here verwoord, al sy lof verkondig? Gelukkig is hulle wat die reg onderhou, te alle tye geregtigheid handhaaf! Dink aan my, Here, uit welwillendheid teenoor u volk; sien om na my tydens u verlossing, sodat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag ervaar, mag deel in die vreugde van u nasie, en saam met u erfdeel mag roem. Ons het saam met ons voorouers gesondig, ons het afgedwaal, goddeloos opgetree. Ons voorouers het in Egipte u wonders nie begryp nie, en u oorvloedige troue liefde nie onthou nie, maar in opstand gekom by die see, by die Rietsee. En tog het Hy hulle verlos ter wille van sy Naam, om sy mag bekend te maak. Hy het die Rietsee gedreig, en dit het droog geword; Hy het hulle deur die watermassa laat gaan asof deur 'n woestyn. Hy het hulle verlos uit die hand van haters, hulle vrygekoop uit die hand van vyande. Die water het hulle teenstanders bedek; nie een van hulle het oorgebly nie. Toe het hulle sy beloftes geglo; hulle het sy lof besing. Maar gou het hulle sy dade vergeet; hulle het nie sy raad afgewag nie. Hulle gulsigheid het hulle in die woestyn oorval; hulle het God uitgedaag in die wildernis. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het 'n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan. In die kamp was hulle jaloers op Moses, op Aäron, die gewyde van die Here. Die aarde het oopgegaan en Datan verswelg, dit het toegegaan oor die bende van Abiram. 'n Vuur het onder hulle bende uitgebreek, vlamme het die goddeloses verskroei. Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak, in aanbidding gebuig voor 'n gegote beeld. Hulle het hulle Majesteit verruil vir die afbeelding van 'n bees wat gras eet! Hulle het God wat hulle verlos, vergeet, Hy wat groot dade in Egipte gedoen het, wonders in die land van Gam, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het daaraan gedink om hulle uit te roei, as Moses, sy uitverkorene, nie by Hom in die bres getree het vir hulle om sy vernietigende toorn af te weer nie. Hulle het 'n kosbare land afgewys; hulle het nie sy woord geglo nie. Hulle het in hulle tente gemor en nie na die stem van die Here geluister nie. Hy het met sy hand omhoog gesweer om hulle in die woestyn neer te vel, om hulle nageslag neer te vel onder die nasies, hulle te verstrooi in ander lande. Hulle het hulle ook aan Baäl-Peor verbind en offerandes aan dooies geëet. Hulle het Hom met hulle optrede getart, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek. Pinehas het opgestaan, tussenbeide getree, en die plaag is gestuit. Dit is hom toegereken as 'n regverdige daad, van geslag tot geslag, vir altyd. By die water van Meriba het hulle Hom vertoornd gemaak en deur hulle toedoen het dit sleg afgeloop vir Moses – omdat hulle teen God se Gees in opstand was, het onbesonne woorde oor sy lippe gekom. Hulle het nie die volke uitgeroei wat die Here vir hulle aangedui het nie. Hulle het met die nasies vermeng geraak en hulle gebruike aangeleer. Hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n valstrik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer en so onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle vir die afgode van Kanaän geoffer het. Die land is deur bloedskuld besoedel. Hulle het •onrein geword deur daardie gebruike; hulle het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die Here het teen sy volk ontbrand; Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel en hulle oorgegee in die hand van nasies, sodat hulle haters oor hulle geheers en hulle vyande hulle geteister het; hulle moes buig onder hulle hand. Baie kere het Hy hulle gered, maar hulle was doelbewus opstandig en het in hulle sondeskuld weggesink. Tog het Hy hulle nood raakgesien telkens wanneer Hy hulle klaagroep hoor. Om hulle ontwil het Hy aan sy verbond gedink, en Hy het hulle jammer gekry uit die oorvloed van sy troue liefde. Hy het gesorg dat daar ontferming is by almal wat hulle weggevoer het. Verlos ons, Here ons God! Bring ons uit die nasies bymekaar sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom. Lofwaardig is die Here, die God van Israel, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen! Halleluja!” “Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde,” moet hulle sê wat deur die Here vrygekoop is, hulle wat Hy vrygekoop het uit die hand van teenstanders, en byeengebring het uit alle lande, uit die ooste en die weste, uit die noorde en vanaf die see. Hulle het in die woestyn rondgedwaal, in die wildernis was hulle op pad; 'n stad, 'n woonplek, kon hulle nie kry nie. Honger en dors was hulle; die lewenskrag in hulle het weggekwyn. Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle gered. Hy het hulle op 'n gelyk pad gelei om na 'n stad, 'n woonplek, te gaan. Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders; want Hy het die dors van hulle kele geles, en die honger van hulle kele het Hy gestil met wat goed is. Hulle wat in donkerte en digte duisternis gesit het, was gevangenes in ellende en ysterboeie, omdat hulle teen God se woorde in opstand was en die raad van die Allerhoogste verontagsaam het. Hy het hulle harte deur swaarkry nederig gemaak. Hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit donkerte, uit digte duisternis gelei; hulle boeie het Hy stukkend gebreek. Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders; want Hy het deure van brons stukkend gebreek, die sluitbalke van yster stukkend gekap. Dwase het, deur hulle pad van oortreding en deur hulle sondeskuld, hulle eie teistering veroorsaak. Aan alle kos het hulle kele gewalg, hulle het tot by die poorte van die dood gekom. Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos. Hy het sy woord gestuur en hulle genees; Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile. Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders. Hulle moet aan Hom •dankoffers bring en met jubelkrete van sy dade vertel. Dié wat by die see in bote klim, hulle wat handel dryf op die groot waters, hulle het self die dade van die Here beleef, sy wonders op die diepwater. Hy het gepraat en 'n stormwind laat opsteek; dit het die see se golwe laat uittroon. Hulle het opgerys na die hemel, afgesak na die dieptes; in die ramp het hulle moed hulle begewe. Hulle het rondgeslinger, en gesteier soos 'n dronk mens; al hulle vernuf was waardeloos. Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar. Hulle was bly toe die golwe kalm word. Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het. Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders. Hulle moet Hom verheerlik in die byeenkoms van die volk, Hom loof waar die oudstes saam sit. Hy het riviere verander in 'n woestyn, waterbronne in 'n dorsland, vrugbare aarde in brak grond – vanweë die boosheid van dié wat daar woon. Hy het 'n woestyn verander in 'n waterryke vleiland, droë aarde in waterbronne. Hongeres het Hy daar laat woon, hulle kon 'n stad, 'n woonplek, vestig. Hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat die vrug van die oes gelewer het. Hy het hulle geseën, hulle baie meer laat word; hulle vee het Hy nie minder laat word nie. Toe hulle minder geword en gebuk gegaan het onder die druk van rampe en bekommernis, het Hy wat minagting uitstort oor vooraanstaandes, en hulle laat ronddwaal in 'n woesteny sonder paaie, behoeftiges beskerm teen ellende, en hulle familiegroepe so talryk soos kuddes kleinvee gemaak. Opregtes sien dit en is verheug; maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe. Wie wys is, moet hierop ag slaan en op die troue liefde van die Here let. 'n Lied. 'n Psalm. Van Dawid. My hart is standvastig, o God. Ek wil sing, ek wil lofsing, ja, van harte. Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak. Ek wil U dank onder die volke, Here, ek wil U besing onder die nasies; want groot, ja, hoër as die hemel, is u troue liefde; tot by die wolke is u waarheid. Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid oor die hele aarde, sodat u geliefdes gered kan word. Verlos tog met u regterhand en antwoord my. God self het in sy heiligdom verklaar: “Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel, die vallei van Sukkot gaan Ek afmeet. Aan My behoort Gilead, aan My Manasse; Efraim is 'n beskutting vir my kop, Juda is my heerserstaf. Moab is my waskom, op Edom gooi Ek my sandaal; oor Filistea juig Ek.” Wie sal my bring na 'n versterkte stad? Wie sal my lei tot by Edom? Is dit nie U, o God, wat ons verstoot het nie? U, o God, trek nie meer saam met ons leërs uit nie. Kom ons te hulp teen teenstanders – die hulp van mense is nutteloos. Met God tree ons dapper op – Hý sal ons teenstanders vertrap. Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. O God, aan wie my lof toekom, moet tog nie stilbly nie; want die monde van goddeloses, ja, monde vol bedrog, is wyd oop teen my – hulle beskuldig my met tonge wat lieg. Met woorde van haat omsingel hulle my; hulle val my sonder rede aan. In antwoord op my liefde is hulle vyandig teenoor my, en dit terwyl ek in gebed is. Hulle vergeld my met kwaad vir goed, met haat vir my liefde. Hulle sê: “Stel 'n goddelose teen hom aan, laat 'n aanklaer aan sy regterkant staan. Wanneer die beslissing oor hom gegee word, moet hy as 'n skuldige na vore tree; sy gebed moet hom as sonde toegereken word. Mag sy lewensdae min wees; mag iemand anders sy amp oorneem. Mag sy kinders vaderloos word en sy vrou 'n weduwee. Mag sy kinders bly rondswerf en bedel, en kos soek op hulle puinhope. Mag die skuldeiser beslag lê op alles wat aan hom behoort, en mag vreemdes die vrug van sy arbeid plunder. Mag daar vir hom niemand wees wat in troue liefde uitreik nie; mag daar niemand wees wat hom ontferm oor sy vaderlose kinders nie. Mag sy nageslag uitgeroei word – in die volgende geslag moet hulle name uitgewis word. Mag die sondeskuld van sy voorouers die Here bybly, en mag die sonde van sy moeder nie uitgewis word nie. Mag dit altyd voor die Here wees, sodat Hy die herinnering aan hulle van die aarde af verdelg; omdat hierdie man nie daaraan gedink het om troue liefde te bewys nie, maar magtelose mense en behoeftiges, dié met vreesbevange harte, vervolg het om hulle dood te maak. Hy was lief vir vervloeking – dit het hom getref. Hy het niks gehou van seën nie – dit het ver van hom gebly. Hy het vervloeking aangetrek soos sy bokleed – dit het sy binneste ingedring soos water, en sy gebeente soos olie. Mag dit vir hom word soos 'n kledingstuk waarin hy homself hul, en 'n lyfband wat hy altyd dra.” Mag dít van die Here se kant die straf wees vir hulle wat my vyandiggesind is, en wat onheil oor my lewe uitspreek! Maar, U, Here, my Heer, handel met my ter wille van u Naam; omdat u troue liefde goed is, red my! Want ek is magteloos en behoeftig, en my hart is deurboor in my binneste. Soos 'n skaduwee wat lank word, gaan ek heen; ek word afgeskud soos 'n treksprinkaan. My knieë gee mee sonder dat ek vas; my liggaam is uitgeteer, sonder olie. En ek, ek het vir hulle 'n bespotting geword; wanneer hulle my sien, skud hulle die kop. Help my, Here my God; verlos my in u troue liefde, sodat hulle kan weet dat dit u hand is, dat U, Here, dit gedoen het. Hulle kan maar vervloek, maar U, U sal seën. Sou hulle teen my opstaan, sal hulle beskaam word; u dienskneg sal bly wees. Mag hulle wat my vyandiggesind is, geklee wees in vernedering; mag hulle in hulle skande gehul wees soos in 'n mantel. Met my mond sal ek die Here met oorgawe prys, tussen baie mense sal ek Hom loof; want Hy staan aan die regterkant van die behoeftige om hom te verlos van hulle wat oor sy lewe wil beslis. Van Dawid. 'n Psalm. Dit is die uitspraak van die Here vir my heer: “Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete maak.” Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: “Heers te midde van jou vyande! Jou volk bied hulleself gewillig aan op die dag van jou magsvertoon op die heilige berge. Uit die skoot van die daeraad het Ek jou soos dou verwek.” Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal nie spyt wees nie: “Jy is priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek.” My Heer, die een aan u regterhand verpletter konings op die dag van sy toorn. Onder die nasies voltrek hy die vonnis – dit is vol lyke; hy verpletter hoofde oor 'n groot gebied. Op pad drink hy uit die spruit; daarom sal hy sy hoof hoog hou. Halleluja! Ek wil die Here prys met my hele hart, in die kring van opregtes en in die byeenkoms. Indrukwekkend is die werke van die Here, 'n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind. Vol luister en glansrykheid is wat Hy doen, en sy geregtigheid hou stand vir altyd. Hy het bewerk dat sy wonders onthou word. Genadig en barmhartig is die Here. Hy het kos gegee aan wie vir Hom ontsag het. Hy hou vir ewig sy verbond in gedagte. Die krag van sy dade het Hy aan sy volk bekend gemaak deur die erfdeel van nasies aan hulle te gee. Die werk van sy hande is betroubaar en reg. Betroubaar is al sy opdragte, bestendig vir altyd, vir ewig – dit word nagekom in trou en opregtheid. Verlossing het Hy vir sy volk gestuur. Hy het sy verbond vir ewig voorgeskryf. Heilig en ontsagwekkend is sy Naam. Die begin van wysheid is ontsag vir die Here; almal wat sy opdragte uitvoer, het goeie insig. Sy lof hou vir altyd stand. Halleluja! Gelukkig is die mens wat ontsag het vir die Here, wat groot vreugde vind in sy gebooie. Sy nageslag sal magtig wees in die land – 'n geslag opregtes wat geseën word. Oorvloed en rykdom is in sy huis, en sy geregtigheid hou stand vir altyd. Hy skyn in die duisternis as 'n lig vir die opregtes; hy is genadig, barmhartig en regverdig. Dit gaan goed met 'n mens wat goedhartig is en uitleen, wat sy sake eerlik bestuur; want hy sal nooit wankel nie. 'n Regverdige bly vir altyd in die herinnering. Vir slegte tyding is hy nie bang nie; sy hart is standvastig in vertroue op die Here. Sy hart is bestendig, hy is nie bang nie; uiteindelik sien hy neer op sy teenstanders. Hy deel uit, hy gee aan behoeftiges; sy geregtigheid hou stand vir altyd; met waardigheid styg sy aansien. Die goddelose sien dit en vererg hom; hy kners op sy tande, maar kwyn weg. Die begeerte van goddeloses gaan tot niet. Halleluja! Loof, diensknegte van die Here, Loof die Naam van die Here. Mag die Naam van die Here geprys word, van nou af tot in ewigheid. Mag, van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, die Naam van die Here geloof word. Hoog bo al die nasies is die Here; bo die hemel is sy heerlikheid. Wie is soos die Here, ons God, wat hoog woon, wat laag afkyk op die hemel en die aarde – Hy wat hulpeloses uit die stof laat opstaan, van die ashoop af behoeftiges verhef om hulle by vooraanstaandes te laat sit, by die vooraanstaandes van sy volk, Hy wat aan die onvrugbare vrou van die huis 'n tuiste gee – 'n gelukkige moeder van kinders. Halleluja! Toe Israel uit Egipte weggetrek het, die huis van Jakob weg van die volk met 'n vreemde taal, het Juda God se heiligdom geword, Israel sy magsgebied. Die see het dit gesien en gevlug; die Jordaan het teruggedeins. Die berge het gebokspring soos ramme, die heuwels soos lammers. Wat gaan met jou aan, see, dat jy vlug, Jordaan, dat jy terugdeins, berge, dat julle soos ramme bokspring, en julle, heuwels, soos lammers? Sidder, aarde, voor die Heer, voor die God van Jakob, wat die rots verander het in 'n waterryke vleiland, die vuursteen in 'n waterfontein. Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, oor u troue liefde, oor u bestendigheid. Waarom sê die nasies: “Waar is hulle God dan?” Ons God is in die hemel; alles wat Hom behaag, doen Hy. Hulle afgode is silwer en goud, die werk van mensehande. Hulle het monde, maar kan nie praat nie, oë, maar kan nie sien nie. Hulle het ore, maar kan nie hoor nie, neuse, maar kan nie ruik nie, hande, maar kan nie aanraak nie, voete, maar kan nie loop nie; met hulle kele maak hulle geen geluid nie. Hulle makers sal net soos hulle word – elkeen wat op hulle vertrou. Israel, vertrou op die Here! Hy is hulle hulp en hulle skild. Huis van Aäron, vertrou op die Here! Hy is hulle hulp en hulle skild. Julle wat vir die Here ontsag het, vertrou op die Here! Hy is hulle hulp en hulle skild. Die Here dink aan ons. Hy sal seën: Hy sal die huis van Israel seën; Hy sal die huis van Aäron seën; Hy sal hulle wat vir die Here ontsag het, seën – die kleintjies saam met die grotes. Mag die Here julle meer maak, julle en julle kinders. Mag julle geseën word deur die Here wat hemel en aarde gemaak het. Die hemel is die Here se hemel, maar die aarde het Hy vir mensekinders gegee. Die dooies sal die Here nie loof nie, nie enige van hulle wat na die stilte afdaal nie. Maar ons, ons sal die Here prys, nou en vir altyd. Halleluja! Ek het die Here lief, want Hy luister na my stem, my smeekgebed; ja, Hy draai sy oor na my, en solank ek leef, sal ek Hom aanroep. Bande van die dood het my omsluit; angste van die •doderyk het my oorval; benoudheid en bekommernis het ek ervaar. Toe het ek die Naam van die Here bly aanroep: “Ag, Here, red tog my lewe!” Genadig is die Here en regverdig; ons God is barmhartig. Die Here beskerm onkundiges; ek is nietig, maar Hy het my verlos. Kom weer tot rus, my •siel, want die Here het goed gedoen aan jou. Ja, U het my lewe van die dood gered, my oë van trane, my voete van struikeling. Ek mag leef in die teenwoordigheid van die Here, in die land van die lewendes. Ek het bly glo, selfs toe ek gesê het: “Ek is swaar beproef.” Ek is een wat in my angstigheid gesê het: “Alle mense is leuenaars.” Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy goeie dade aan my? Die beker van verlossing sal ek oplig en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal, daar voor sy hele volk. In die oë van die Here is die dood van sy troue volgelinge 'n duur verlies. Ag, Here, omdat ek u dienskneg is – ja, ek is u dienskneg, die seun van u diensmeisie – het U my boeie losgemaak. Aan U sal ek •dankoffers bring en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal, daar voor sy hele volk, in die voorhowe van die huis van die Here, in jou midde, Jerusalem. Halleluja! Loof die Here, alle nasies, roem Hom, alle volke, want magtig oor ons is sy troue liefde, ja, die trou van die Here is vir ewig. Halleluja! Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Laat Israel sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” Laat die huis van Aäron sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” Laat dié wat vir die Here ontsag het, sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” In my angs het ek geroep: “ Here!” Hy het my geantwoord; die Here het vir my ruimte gemaak. Die Here is vir my; ek sal nie bang wees nie. Wat kan 'n mens aan my doen? Die Here is vir my, as my helper; en ek, ek sal op my haters neersien. Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou. Alle nasies het my omsingel; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. Hulle het my omsingel, ja, hulle het op my toegesak; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. Hulle het my omsingel soos bye, maar hulle is geblus soos 'n vuur in doringstruike. In die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. Julle het my hard gestamp, dat ek moes val, maar die Here het my gehelp. My krag en sterkte was die Here; Hy het my tot hulp gekom. Die geluid van jubelkrete en van verlossing klink op in die tente van regverdiges. Die regterhand van die Here doen kragtige dade. Die regterhand van die Here is hoog gelig; die regterhand van die Here doen kragtige dade. Ek sal nie sterf nie, maar ek sal lewe en vertel van die dade van die Here. Die Here het my ernstig tereggewys, maar aan die dood het Hy my nie oorgegee nie. Maak vir my die poorte na •geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys. “Dit is die poort na die Here – regverdiges mag daardeur ingaan.” Ek wil U prys, omdat U my geantwoord en my te hulp gekom het. Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom; dit is 'n wonder in ons oë. Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug. Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed! Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here. Die Here is God; Hy het vir ons lig laat skyn. Voer met gevlegte takke die kringdans uit tot by die horings van die altaar. U is my God en ek prys U! My God, ek wil U verheerlik. Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg! Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek; wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg! U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom. Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom. Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie. Ek prys U met 'n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer. U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie. Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. U moet geprys word, Here! Leer my u voorskrifte! Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond. Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom. Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let. In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie. Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; Here, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig. Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid. Laat u troue liefde my deel word, Here, u verlossing volgens u woord, sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord. Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings. Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig. Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek. Ek sal oor u bepalings voor konings praat sonder om my te skaam. Ek vind vreugde in u bevele wat ek liefhet; ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet; ek dink na oor u voorskrifte. Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het. Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou. Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie. Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, Here, en ek was getroos. Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat u wet verlaat. Maar u voorskrifte was vir my liedere in 'n plek waar ek 'n vreemdeling was. Ek het u Naam in die nag onthou, Here, en ek het u wet nagekom. Dit het deel geword van my – dat ek by u opdragte hou. U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom. Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte. Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie. Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie. In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings. Ek is 'n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom. Here, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte. U het goed gedoen aan u dienskneg, Here, volgens u woord. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele. Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na. U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte. Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte. Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet. Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer. Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer. Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek. Ek weet, Here, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het. Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg. Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde. Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte. Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken. Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie. My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?” Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie. Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers? Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie. Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my! Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie. Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom. Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim. Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; Here, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, Here, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe. Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die Here om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek. U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie. Regverdig is U, Here, en u beslissings is reg. U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe. Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, Here, u voorskrifte wil ek onderhou!” Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!” Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek. Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink. Luister tog in u troue liefde na my stem, Here, hou my lewend volgens u beslissing. Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet. Maar U, Here, is naby, en al u gebooie is betroubaar. Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het. Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie. Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte. Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie. U ontferming is groot, Here; hou my lewend volgens u beslissings. My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie. Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie. Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, Here, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde. Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig. Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees. Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het. Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. Ek vestig my hoop op u verlossing, Here, en ek voer u bevele uit. Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U. Laat my klaagroep voor U kom, Here; gee my insig ooreenkomstig u woord. Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte. My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte. My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig. Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte. Ek verlang na u verlossing, Here; u wet is my vreugde. Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help. Ek dwaal rond soos 'n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie. 'n •Pelgrimslied. Na die Here het ek in my nood geroep en Hy het my geantwoord. Here, bevry my lewe, van lippe wat lieg, van 'n tong wat bedrieg. Wat moet Hy jou gee, en wat moet Hy vir jou byvoeg, bedrieglike tong? Die skerpgemaakte pyle van 'n held saam met gloeiende kole van 'n witbesembos! Wee my, want ek vertoef as 'n •vreemdeling in Meseg; ek woon by die tente van Kedar. Te lank woon ek by hulle wat vrede haat. Ek is vir vrede, maar wanneer ek praat, is hulle gereed vir oorlog. 'n •Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd. 'n •Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here. ” Ons voete staan in jou poorte, Jerusalem – Jerusalem, gebou as 'n stad wat as 'n eenheid saamgebind is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here, soos aan Israel voorgeskryf is, om die Naam van die Here te prys. Want daar staan trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. Bid vir die vrede van Jerusalem: “Mag dié wat jou liefhet, rustig leef; mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings. ” Ter wille van my •broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!” Ter wille van die huis van die Here ons God wil ek die goeie vir jou nastreef. 'n •Pelgrimslied. Na U kyk ek op, U wat in die hemel woon. Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van 'n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Wees ons genadig, Here, wees ons genadig; want ons het meer as genoeg gehad van minagting; tot in ons diepste wese het ons meer as genoeg gehad van die spotlag van selfvoldane mense, van die minagting deur hooghartiges. 'n •Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here nie vir ons was nie – laat Israel dit sê – as die Here nie vir ons was toe mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig ingesluk toe hulle toorn teen ons ontbrand het; dan het die water ons oorspoel, 'n stroom ons oorweldig; dan het die tierende waters ons lewens oorweldig. Die Here moet geprys word, Hy wat ons nie as prooi aan hulle tande oorgegee het nie. Ons, net soos 'n voël het ons ontvlug uit die net van voëlvangers: Die net is gebreek en ons, ons het ontvlug. Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. 'n •Pelgrimslied. Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan. Jerusalem word omring deur berge; die Here omring sy volk van nou af tot in ewigheid. Ja, die goddelose septer sal nie rus op wat aan die regverdiges toegeken is nie, sodat die regverdiges nie hulle hande na onreg uitsteek nie. Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte. Maar dié wat afdraai op kronkelpaaie – die Here sal hulle laat weggaan saam met dié wat onreg pleeg. Vrede oor Israel! 'n •Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom. Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete. Toe is onder die nasies gesê: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” Die Here het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug. Verander weer ons lot, Here, soos stroombeddings in die Negev. Dié wat met trane saai, sal met jubelkrete maai. Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra. 'n •Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Kyk, seuns is 'n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is 'n beloning. Soos pyle in die hand van 'n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie. 'n •Pelgrimslied. Gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg! Die vrug van jou hande sal jy beslis geniet. Gelukkig is jy! Dit gaan goed met jou. Jou vrou is soos 'n vrugbare wingerdstok in die binnekamers van jou huis. Jou kinders is soos olyfboompies om jou tafel. Kyk, so sal die man geseën word wat vir die Here ontsag het. Mag die Here jou seën uit Sion, sodat jy al die dae van jou lewe die goeie van Jerusalem sal geniet, en mag jy jou kinders se kinders sien. Vrede oor Israel! 'n •Pelgrimslied. Van my jeug af het hulle my dikwels aangeval – laat Israel dit sê – van my jeug af het hulle my dikwels aangeval, tog kon hulle nie oor my die oorhand kry nie. Ploeërs het oor my rug geploeg, hulle ploegvore lank getrek; maar die Here is regverdig – Hy het die goddeloses se toue stukkend gesny. Mag almal wat Sion haat, beskaamd staan en terugdeins. Mag hulle wees soos gras op dakke, wat verdroog voordat dit uitgetrek word, wat nooit die handpalm vul van een wat oes, of die vou van die kleed van een wat gerwe bind nie. En mag verbygangers nie sê nie: “Die seën van die Here vir julle; ons seën julle in die Naam van die Here. ” 'n •Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here. My Heer, hoor tog my stem, laat u ore aandagtig luister na my smeekbedes. As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly? Maar by U is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing. Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre. Israel, vestig jou hoop op die Here; want by die Here is troue liefde, by Hom is volkome bevryding. Dit is Hy wat Israel bevry van al sy sondeskuld. 'n •Pelgrimslied. Van Dawid. Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie. Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring. Soos 'n kindjie by sy moeder, soos 'n kindjie, is my siel in my. Israel, vestig jou hoop op die Here, nou en vir altyd. 'n •Pelgrimslied. Dink tog, Here, aan Dawid, aan al sy opofferings, hy wat teenoor die Here 'n eed gesweer het, 'n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob: “Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie, ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie, totdat ek vir die Here 'n plek gevind het, 'n woning vir die Magtige van Jakob.” Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär. Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete. Staan op, Here, gaan na u rusplek, U en u magtige •ark. U priesters moet geklee wees in •geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel. Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie. Die Here het vir Dawid 'n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas. As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.” Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: “Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit. Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig; haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig. Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitgroei; Ek het 'n lamp gereedgemaak vir my gesalfde. Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.” 'n •Pelgrimslied. Van Dawid. Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as •broers ook saam woon. Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop oor die kraag van sy klere. Dit is asof die dou van Hermon afkom op die Sionsberge; want daar beveel die Here sy seën, lewe vir altyd. 'n •Pelgrimslied. Kom! Prys die Here, julle almal, diensknegte van die Here, wat snags diens verrig in die huis van die Here. Hef julle hande op na die heiligdom en prys die Here. Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Halleluja! Loof die Naam van die Here! Loof Hom, diensknegte van die Here, wat diens verrig in die huis van die Here, in die voorhowe van die huis van ons God. Loof die Here, want die Here is goed; besing sy Naam, want dit is lieflik; want die Here het Jakob vir Hom uitgekies, Israel as sy persoonlike eiendom. Ja, ek, ek weet dat die Here groot is, dat ons Heer groter is as al die gode. Alles wat die Here behaag, doen Hy in die hemel en op die aarde, in die oseane en alle dieptes. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind uit sy voorraadkamers vry; Hy wat die •eersgeborenes van Egipte, van mense en diere, getref het. Hy het tekens en wonders in jou midde verrig, Egipte, teen die farao en al sy amptenare, Hy wat baie nasies getref en magtige konings om die lewe gebring het: Sihon, die koning van die Amoriete, Og, die koning van Basan en al die konings van Kanaän. En Hy het hulle land as erfdeel gegee, as 'n erfdeel aan Israel, sy volk. Here, u Naam is vir ewig; Here, u gevierde Naam duur van geslag tot geslag. Want die Here laat reg geskied aan sy volk; oor sy diensknegte ontferm Hy Hom. Die afgode van die nasies is silwer en goud, die werk van mensehande. Hulle het monde, maar kan nie praat nie, oë, maar kan nie sien nie. Hulle het ore, maar kan nie hoor nie; daar is ook glad nie asem in hulle monde nie. Hulle makers sal net soos hulle word – elkeen wat op hulle vertrou. Huis van Israel, prys die Here! Huis van Aäron, prys die Here! Huis van Levi, prys die Here! Wie vir die Here ontsag het, prys die Here! Die Here moet geprys word uit Sion, Hy wat in Jerusalem woon. Halleluja! Prys die Here, want Hy is goed – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys die God van die gode – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys die Heer van die here – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys Hom wat groot wonders doen, Hom alleen – want vir ewig duur sy troue liefde – wat met insig die hemel gemaak het – want vir ewig duur sy troue liefde – wat die aarde oor die waters uitgespan het – want vir ewig duur sy troue liefde – wat die groot ligte gemaak het – want vir ewig duur sy troue liefde – die son om te heers in die dag – want vir ewig duur sy troue liefde – die maan en sterre om te heers in die nag – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys Hom wat Egipte getref het deur hulle •eersgeborenes – want vir ewig duur sy troue liefde – en Israel uit hulle midde laat wegtrek het – want vir ewig duur sy troue liefde – met 'n sterk hand en uitgestrekte arm – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys Hom wat die Rietsee in twee gesny het – want vir ewig duur sy troue liefde – en Israel in die middel laat deurtrek het – want vir ewig duur sy troue liefde – maar die farao en sy leër in die Rietsee afgeskud het – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys Hom wat sy volk deur die woestyn laat gaan het – want vir ewig duur sy troue liefde – groot konings verslaan het – want vir ewig duur sy troue liefde – magtige konings om die lewe gebring het – want vir ewig duur sy troue liefde – Sihon, die koning van die Amoriete – want vir ewig duur sy troue liefde – en Og, die koning van Basan – want vir ewig duur sy troue liefde. Hy het hulle land as erfdeel gegee – want vir ewig duur sy troue liefde – as erfdeel aan Israel sy dienskneg – want vir ewig duur sy troue liefde – Hy wat in ons vernedering aan ons gedink het – want vir ewig duur sy troue liefde – en ons van ons teenstanders weggeruk het – want vir ewig duur sy troue liefde – Hy wat kos gee aan alles wat leef – want vir ewig duur sy troue liefde. Prys die God van die hemel – want vir ewig duur sy troue liefde! Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; want daar het dié wat ons gevange geneem het vir ons die woorde van 'n lied gevra; hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag: “Sing vir ons een van die Sionsliedere!” Hoe kan ons 'n lied van die Here sing op vreemde grond? As ek jou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan vergeet hoe om te speel. Mag my tong aan my verhemelte kleef, as ek jou nie onthou nie, as ek Jerusalem nie my heel grootste vreugde maak nie. Here, onthou die Edomiete oor die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: “Stroop, stroop haar tot op die fondamente!” Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou jou dade vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen 'n rotswand! Van Dawid. Ek wil U prys met my hele hart; voor die gode wil ek U besing. Ek wil in aanbidding buig na u •heilige •tempel; ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou; Want U het u beloftes bo al u roem laat uitstyg. Die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord. U maak my innerlik sterker. Al die konings van die aarde moet U prys, Here, wanneer hulle die woorde van u mond hoor. Hulle moet sing oor die weë van die Here: “Groot is die heerlikheid van die Here. Ja, verhewe is die Here, maar nederiges sien Hy raak en hoogmoediges ken Hy van ver af.” As ek in diep benoudheid verkeer, bewaar U my lewe; teen die toorn van my vyande steek U u hand uit; u regterhand verlos my. Die Here self tree vir my in. Here, u troue liefde duur vir ewig; u handewerk – moet dit nie laat vaar nie! Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U ondersoek my en U ken my. U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig! Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”, is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig. Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U. As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af! Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef. Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie? Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad. Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Red my, Here, van slegte mense; hou my veilig teen geweldenaars, hulle wat in hulle harte booshede beplan, wat elke dag gevegte aanhits. Hulle maak hulle tonge so skerp soos dié van slange; die gif van adders skuil agter hulle lippe. Here, beskerm my teen die hande van goddeloses; hou my veilig teen geweldenaars wat beplan om my voete te laat ontspoor. Hoogmoediges het in die geheim vir my 'n vangnet gespan; met toue het hulle 'n net langs die pad oopgesprei; vangstrikke het hulle vir my gestel. Ek het vir die Here gesê: “U is my God; Here, luister na my smeekgebed. Here, my Heer, die krag wat my verlos, U beskut my kop op die dag van oorlog. Here, gee tog nie die goddeloses wat hulle begeer nie; hulle bose planne, laat dit nie slaag nie. Hulle sal verwaand raak. “Die koppe van hulle wat my omring, laat dit oordek word met die onheil wat hulle ander toewens.” Mag gloeiende kole oor hulle uitgeskud word; mag Hy hulle in die vuur laat val, in bodemlose putte dat hulle nooit weer opstaan nie. Lasteraars – mag hulle nie gevestig raak in die land nie. Geweldenaars – mag onheil op hulle jag maak, keer op keer. Ek weet: Die Here behartig die regsaak van magteloses, die reg van behoeftiges. Waarlik, regverdiges sal u Naam prys; opregtes sal in u teenwoordigheid woon. 'n Psalm. Van Dawid. Here, ek roep U aan; kom gou na my toe! Luister na my stem wanneer ek na U roep. Mag my gebed standhoudend voor U wees soos reukwerk, die ophef van my hande soos die aandoffer. Here, plaas 'n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe. Moet my hart nie laat neig na iets wat sleg is nie, sodat ek nie deur 'n misstap roekeloos optree saam met manne wat onreg pleeg nie; laat ek tog nie aan hulle lekkernye proe nie. 'n Regverdige kan my maar slaan – dit is uit troue liefde; hy kan my maar teregwys – dit is olie vir die kop. My kop sal dit nie weier nie. Maar my gebed sal steeds gerig wees teen daardie mense se bose dade. Al sou hulle regeerders oor die rand van 'n krans afgegooi word, sou hulle steeds hoor dat my woorde aangenaam is. Soos wanneer iemand grond omploeg en vore daarin maak, lê ons beendere uitgestrooi by die ingang van die •doderyk. Maar op U, Here, my Heer, bly my oë gerig; by U skuil ek. Moenie my lewe uitgiet nie. Beskerm my teen die greep van die vangnet wat hulle vir my gespan het, teen die valstrikke van hulle wat onreg pleeg. Laat goddeloses in hulle eie vangnette val, terwyl ek alleen daar verbygaan. 'n Maskiel. Van Dawid. Toe hy in die grot was. 'n Gebed. Na die Here roep ek hardop om hulp; by die Here pleit ek hardop om genade. Ek stort voor Hom my klag uit; voor Hom maak ek my nood bekend. Wanneer my gees in my begin weifel, is dit U wat my pad ken. Op die pad wat ek moet loop, het hulle in die geheim 'n vangnet vir my gespan. As ek regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie. 'n Skuilplek is vir my verlore; niemand is begaan oor my lewe nie. Ek roep na U om hulp, Here. Ek sê: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes. Gee tog aandag aan my klaagroep, want ek is baie nietig. Red my van my vervolgers, want hulle is te sterk vir my. Lei my uit gevangenskap, sodat ek u Naam kan prys. Regverdiges sal om my saamkom as U aan my goed doen.” 'n Psalm. Van Dawid. Here, hoor my gebed, luister na my smeekgebed; antwoord my in u trou, in u geregtigheid. Moet net nie u dienskneg voor die gereg daag nie; want niemand wat leef, is voor U regverdig nie. Ja, vyande agtervolg my, hulle verpletter my lewe teen die grond; hulle laat my woon in donker plekke, soos mense wat lankal dood is. My gees in my weifel; in my binneste is my hart verbyster. Ek dink aan dae lank gelede, ek mymer oor al u dade; oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit na U; my diepste wese smag na U soos dor grond. U moet my gou antwoord, Here; my gees is gedaan. Moet tog nie u gesig vir my verberg nie; dan word ek net soos hulle wat in die put afdaal. Laat my in die môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want na U is my verlange. Red my van my vyande, Here; na U vlug ek. Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is, want U is my God. U goeie Gees moet my lei op gelyk grond. Ter wille van u Naam, Here, moet U my in die lewe hou; deur u regverdige optrede moet U my uitlei uit die nood; en in u troue liefde moet U my vyande vernietig. Maak almal tot niet wat my lewe bedreig, want ek is u dienskneg. Van Dawid. Die Here, my rots, moet geprys word, Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, my vingers vir die oorlog. Hy is my vertroueling, my bergskuiling, my beskutting, my bevryder, my skild, en by Hom skuil ek, Hy wat my volk aan my onderwerp. Here, wat is 'n mens dat U hom versorg, 'n sterfling dat U hom in ag neem? 'n Mens is soos 'n asemteug, sy lewensdae soos 'n vlugtige skaduwee. Here, buig u hemel af en daal neer; raak die berge aan, sodat hulle rook. Laat weerligte flits en dryf hulle uitmekaar; stuur u pyle en bring hulle in verwarring. Reik met u hand uit die hoogte, bevry my en red my uit die watermassa, uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is. O God, 'n nuwe lied wil ek vir U sing, met begeleiding van die tiensnarige harp wil ek U besing – U wat aan konings die oorwinning gee, wat Dawid, u dienskneg, bevry van 'n dodelike swaard. Bevry my en red my uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig, en wie se regterhande bedrieglik is, sodat ons seuns soos volgroeide plante kan wees in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgekerf, geskik vir 'n paleis, sodat ons graanskure vol kan wees, alle soorte kos kan lewer, ons kleinvee met duisende, met tienduisende, kan vermeerder in ons oop weivelde, en ons beeste swaar dragtig kan wees; met geen bres in ons mure nie, geen veldtogte en geen gejammer op ons pleine nie. Gelukkig is die volk met wie dit so gaan; gelukkig is die volk wie se God die Here is! 'n Loflied. Van Dawid. Ek wil U verheerlik, o Koning, my God; ek wil u Naam prys vir altyd en altyd. Elke dag wil ek U prys, ek wil u Naam loof vir altyd en altyd. Groot is die Here en besonder lofwaardig; sy grootheid is ondeurgrondelik. Geslag ná geslag roem u werke; u magtige dade maak hulle bekend. Oor die heerlike majesteit van u luister en u wonderdade wil ek nadink. Oor die krag van u ontsagwekkende dade praat mense; van u grootheid wil ek vertel. Oor herinneringe aan u groot goedheid sal hulle uitwei; oor u regverdige optrede sal hulle jubel. Genadig en barmhartig is die Here, geduldig en groot in troue liefde. Die Here is goed vir almal, en sy barmhartigheid strek oor al sy werke. Here, al u werke loof U, en u troue volgelinge prys U. Oor die heerlikheid van u koningskap praat hulle en u mag verkondig hulle, sodat die mensdom kan kennis neem van u magtige dade, van die heerlike majesteit van u koningskap. U koningskap is 'n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte. Die Here ondersteun almal wat val, en help almal regop wat neergeboë is. Almal se oë is vol verwagting op U gerig, en U gee vir hulle hulle kos op tyd. Wanneer U u hand oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê. Regverdig is die Here in al sy weë, en trou aan alles wat Hy gemaak het. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. Hy vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het; hulle hulpgeroep hoor Hy, en Hy verlos hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses delg Hy uit. My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en altyd. Halleluja! Loof die Here, o my siel! Ek wil die Here loof solank ek leef; ek wil my God besing solank ek bestaan. Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op 'n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen. Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here, sy God – Hy wat hemel en aarde gemaak het, die see, en alles wat daarin is, Hy wat trou bly tot in ewigheid, wat die reg van verdruktes handhaaf, aan hongeres brood gee. Die Here laat gevangenes vry; die Here maak blindes se oë oop; die Here rig dié op wat terneergedruk is. Die Here het regverdiges lief; die Here beskerm •vreemdelinge; vaderloses en weduwees help Hy op, maar die pad van goddeloses maak Hy krom. Die Here sal vir ewig regeer, jou God, Sion, van geslag tot geslag. Halleluja! Halleluja! Ja, dit is goed om ons God te besing, ja, dit is aangenaam – 'n loflied is gepas. Die Here herbou Jerusalem, die verstrooides van Israel maak Hy bymekaar. Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind; wat die getal van die sterre bepaal, aan hulle almal name gee. Ons Heer is groot en geweldig sterk; aan sy insig is daar geen grens nie. Die Here help die verdruktes op; goddeloses verneder Hy tot in die grond. Sing vir die Here 'n danklied; besing ons God met begeleiding van liere, vir Hom wat die hemel bedek met wolke, wat vir die aarde reën gereedmaak, gras op die berge laat groei, wat vir die diere hulle kos gee, vir die jong kraaie wat krys. Dit is nie die krag van 'n perd, waaroor Hy Hom verheug nie, nie die bene van 'n man, waarin Hy vreugde vind nie. Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy troue liefde. Roem die Here, Jerusalem, loof jou God, Sion, want Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, Hy het jou kinders in jou geseën, Hy wat jou grense veilig stel. Met die vetste koring versadig Hy jou, Hy wat sy bevel na die aarde stuur – sy woord beweeg vinnig – Hy wat sneeu gee soos wol, ysryp soos as uitstrooi, wat sy ys soos krummels afgooi. Wie kan voor sy koue standhou? Hy stuur sy woord en laat dit smelt; Hy laat sy wind waai en water begin vloei. Hy maak sy woorde aan Jakob bekend, sy vaste voorskrifte en wette aan Israel. Hy het nie so opgetree teenoor enige ander nasie nie; sy wette ken hulle nie. Halleluja! Halleluja! Loof die Here uit die hemel; loof Hom in die hoogtes! Loof Hom, al sy engele; loof Hom, al sy hemelse magte! Loof Hom, son en maan; loof Hom, al die helder sterre! Loof Hom, hoogste hemele en die water wat bo die hemelkoepel is! Laat hulle die Naam van die Here loof, want dit is Hy wat bevel gegee het – en hulle is geskape. Hy het hulle gevestig vir altyd, vir ewig. Hy het 'n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie. Loof die Here vanaf die aarde – seemonsters en al die diep waters, vuur en hael, sneeu en newels, stormwind wat sy bevel uitvoer; berge en al die heuwels, bome wat vrugte dra en al die seders; wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg; konings van die aarde en al die volke, •aanvoerders en al die regeerders van die aarde; jong mans en ook jongmeisies, oumense saam met jongmense. Laat hulle die Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe; sy luister reik oor aarde en hemel. Hy het sy volk sterk gemaak – 'n rede tot lof vir al sy troue volgelinge, die Israeliete, die volk wat na aan Hom is. Halleluja! Halleluja! Sing vir die Here 'n nuwe lied – sy lof in die byeenkoms van getroue volgelinge! Laat Israel hom verheug in sy Maker, laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam loof met koordans, met begeleiding van tamboeryne en liere Hom besing. Want die Here is sy volk goedgesind; Hy vereer verdruktes met oorwinning. Laat getroue volgelinge juig in eerbetoon; laat hulle jubel op hulle beddens – met verheerliking van God uit hulle kele, en tweesnydende swaarde in hulle hande, om vergelding te voltrek onder die nasies, straf onder die volke, om hulle konings in kettings te slaan en hulle geëerdes in ysterboeie, om die vonnis wat opgeteken is, oor hulle te voltrek. Dit sal luister verleen aan al sy getroue volgelinge. Halleluja! Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy magtige hemelkoepel; loof Hom oor sy kragtige dade, loof Hom na die omvang van sy grootheid! Loof Hom met die geskal van •ramshorings, loof Hom met harp en lier; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snaarinstrument en fluit; loof Hom met die klank van simbale, loof Hom met die slag van simbale! Alles wat asem het, moet die Here loof! Halleluja! Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel: om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan; om vermaning wat begrip kweek, te ontvang, begrip vir wat regverdig en billik en reg is; om onkundiges vernuf aan te leer, jongmense kennis en goeie oordeel – 'n wyse sal luister en geleerdheid vermeerder, en 'n verstandige sal leierskap verwerf – om 'n spreuk en 'n gesegde te begryp, die woorde van wyses en hulle raaisels. Ontsag vir die Here is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit. My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek. My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede; laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put. Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit. Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.” My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie; want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet. Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien; maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself! So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe. Wysheid roep opgewonde op straat, op die stadspleine laat sy haar stem hoor. Aan die bopunt van 'n rumoerige straat roep sy uit, by die ingange na die stadspoorte klink haar woorde op: “ Hoe lank nog gaan julle, onkundiges, onkunde liefhê, gaan spotters 'n geklets waardevol ag, en gaan dwase kennis haat? Julle moet reageer op my teregwysing. Kyk, ek sal my gees vir julle laat uitstroom, ek sal my woorde aan julle bekend maak. Omdat ek geroep, maar julle geweier het, ek my hand uitgesteek, maar julle geen aandag gegee het nie, julle al my raad in die wind geslaan het, my teregwysings nie aanvaar het nie, sal ek op my beurt lag oor julle teenspoed, die spot dryf wanneer julle verskrikking kom, wanneer julle verskrikking kom soos 'n stormwind, en julle teenspoed losbreek soos 'n orkaan, wanneer benoudheid en angs julle oorval. “ Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Aangesien hulle kennis gehaat het, ontsag vir die Here nie gekies het nie, my raad nie aanvaar het nie, al my teregwysings versmaai het, sal hulle die vrug van hulle optrede moet eet, sal hulle genoeg kry van hulle eie planne. Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges kos hulle dood; die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle. Maar wie na my luister, sal veilig woon; hulle sal rustig wees, sonder die verskrikking van onheil.” My seun, as jy my woorde aanvaar, my opdragte veilig by jou hou deur aandagtig te luister na wysheid, jou hart te rig op verstandigheid, ja, as jy om insig roep, hardop roep om verstandigheid, as jy dit nastreef soos silwer, dit soos 'n verborge skat naspeur, dan sal jy insig hê in ontsag vir die Here, en kennis van God sal jy vind. Ja, net die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid. Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as 'n skild vir hulle wat onberispelik leef, deurdat Hy die paaie van die reg bewaak; die pad van sy getroue volgelinge beskerm Hy. Dan sal jy verstaan wat regverdig, billik en reg is – elke goeie pad. Want wysheid sal in jou hart inkom, en kennis sal vir jou aangenaam wees. Goeie oordeel sal oor jou wag hou, verstandigheid sal jou bewaak om jou te red van die pad van onheil, van iemand wat verdorwe uitsprake maak, van hulle wat reguit paaie verlaat om op donker weë te gaan, van hulle wat vreugde daarin vind om kwaad te doen, wat juig oor die verdorwenheid van die kwaad, hulle wie se paaie verdraai is, en wat die spoor byster is op hulle roetes, en om jou te red van 'n vreemde vrou, van die uitlander met haar vleitaal, wat die boesemvriend van haar jeug verlaat, die verbond van haar God vergeet. Ja, na die dood sak haar huis af, na die skimme haar spore. Almal wat na haar gaan – hulle keer nie terug nie, hulle bereik nie weer die paaie van die lewe nie. Dus, jy moet die pad van goeie mense loop, en die weë van regverdiges – daarby moet jy hou. Want opregtes sal die land bewoon, en wie onberispelik is, sal daarin agterbly. Maar die goddeloses sal uit die land uitgeroei word, en wie verraderlik optree, sal daaruit weggeruk word. My seun, my onderrig moet jy nie vergeet nie, en my gebooie – jou hart moet daarby hou; want die lengte van jou leeftyd, die lewensjare en vrede sal dan vir jou vermeerder word. Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense. Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad. Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. Eer die Here met jou rykdom, met die beste deel van jou volle oes; dan sal jou graanskure oorvol wees, en van •nuwe wyn sal jou parskuipe oorloop. Die vermaning van die Here, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie 'n afkeer hê van sy teregwysing nie. Want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos 'n vader die seun vir wie hy omgee. Hoe gelukkig is 'n mens wat wysheid vind, en 'n mens wat verstandigheid verkry! Ja, die wins wat wysheid lewer, is meer as dié van silwer, meer as dié van goud is haar opbrengs. Sy is kosbaarder as koraal; niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie. 'n Lang lewe is in haar regterhand, en in haar linkerhand, rykdom en eer. Haar weë is aangename weë, en al haar paaie is vrede. 'n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem. Die Here self het die aarde gegrondves met wysheid, die hemel gevestig met verstand. Deur sy kennis is die •oerwaters gekloof en drup die wolke dou. My seun, vindingrykheid en goeie oordeel – laat dit nie aan jou oë ontglip nie; hou daarby. Dit sal lewe wees vir jou wese, 'n sieraad vir jou nek. Dan sal jy veilig loop op jou pad; jou voet sal jy nie stamp nie. As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie. Want die Here sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap. Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie. Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie. Moenie teen jou medemens kwaad smee, terwyl hy in goeie trou by jou woon nie. Moenie onnodig 'n saak teen iemand begin, as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Moenie iemand wat geweld gebruik, beny nie, en moenie enige van sy paaie kies nie; want vir die Here is iemand wat die spoor byster raak, afstootlik – maar opregtes geniet sy vertroue. Die Here se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy. Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade. Eer is wat wyses as erfdeel ontvang, maar dwase, dié verhoog Hy tot skande. Seuns, luister na die vermaning van 'n vader, en slaan ag daarop om insig te leer ken. Want dit is goeie onderrig wat ek julle gee; my onderwysing – moet dit nie verontagsaam nie. Toe ek 'n seun was by my vader, onervare, en die enigste voor my moeder, het hy my geleer en vir my gesê: “Jou hart moet my woorde vashou. Kom my gebooie na, dan sal jy leef. Verwerf wysheid, verwerf insig, vergeet dit nie; wyk nie af van die woorde uit my mond nie. Moet haar, die wysheid, nie verontagsaam nie; dan sal sy jou beskerm. Wees lief vir haar, dan sal sy jou bewaak. Die begin van wysheid is: Verwerf wysheid, verwerf insig met alles wat jy besit! Stel haar hoog op prys, dan sal sy jou verhoog; sy sal aan jou eer gee as jy haar omarm. Sy sal op jou kop 'n swierige krans sit, 'n sierlike kroon aan jou skenk. “ Luister, my seun, en aanvaar my woorde sodat jou lewensjare baie kan wees. Op die pad van wysheid sal ek jou begelei, ek sal jou laat loop op reguit paaie. Wanneer jy loop, sal jou voetstappe nie belemmer word nie; en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Hou vas aan vermaning, moet dit nie laat vaar nie; hou daarby, want dit is jou lewe. Op die pad van goddeloses moet jy nie kom nie; en moenie die weg van slegte mense betree nie. Vermy dit, moet dit nie eers oorsteek nie, draai weg daarvan en gaan verby. Want hulle kan nie slaap nie, behalwe as hulle kwaad doen; hulle slaap bly weg, tensy hulle iemand tot 'n val bring. Ja, hulle eet brood van goddeloosheid, en wyn van geweld drink hulle. Die pad van regverdiges is soos die helder oggendlig – dit verhelder geleidelik tot die volle dag. Die weg van goddeloses is soos die donker – hulle weet nie waaroor hulle struikel nie. “ My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing. Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe. Bly weg van 'n mond wat valsheid verkondig, en slinkse lippe, hou dit ver van jou. Jou oë moet vorentoe kyk, jou blik moet reg voor jou gerig wees. Hou die pad vir jou voet gelyk; en al jou weë, laat dit bestendig wees. Moenie regs of links afdraai nie, hou jou voet weg van die kwaad.” My seun, op my wysheid moet jy ag slaan, vir my verstandigheid moet jy jou ore spits, om sodoende goeie oordeel te kan bewaar, en op kennis, dat jou lippe daarby hou. Want die lippe van 'n vreemde vrou drup van heuning, en gladder as olie is haar mond. Maar uiteindelik is sy so bitter soos wildeals, so skerp soos 'n tweesnydende swaard. Haar voete gaan af na die dood, op die •doderyk stuur haar voetstappe af. Die pad van die lewe – sy hou dit nie in die oog nie. Haar paaie is onbestendig, maar sy besef dit nie. Daarom, seuns, luister na my, en moenie afwyk van die woorde uit my mond nie. Hou jou pad ver van haar af! Moenie eers naby haar huis se deur kom nie; anders gee jy jou bloeityd aan andere, jou beste jare aan 'n hartelose; anders eet vreemdes hulle versadig aan jou vermoë, en beland dit wat jy met inspanning verdien het, in die huis van 'n buitelander. Uiteindelik sal jy kreun, wanneer jou vlees en jou liggaam daarmee heen is. Jy sal sê: “Hoe het ek vermaning gehaat, hoe het my hart teregwysing versmaai! Ek het nie geluister na die stem van my leermeesters nie, na hulle wat my onderrig het, my oor nie gedraai nie. So byna was ek uitgelewer aan elke onheil, midde-in die byeenkoms van die volksvergadering. ” Drink water uit jou eie opgaarput, en lopende water uit jou eie bron. Moet jou fonteine straataf spoel, op die dorpspleine watervore word? Hulle is vir jou alleen bedoel, nie vir •vreemdelinge by jou nie. Mag jou waterbron geseënd wees; verheug jou oor die vrou van jou jeug – 'n bekoorlike rooitakbokkie, 'n grasieuse klipbokooitjie. Haar borste, mag hulle jou altyd bevredig; mag jy deur haar liefkosings voortdurend bedwelmd wees. Waarom sou jy jou laat bedwelm, my seun, deur 'n vreemde, die boesem van 'n uitlander omhels? Voor die oë van die Here is die weë van 'n man immers oop en bloot, en al sy paaie hou Hy in die oog. Die goddelose – sy eie sondeskuld vang hom, en in die strikke van sy sonde word hy vasgeknel. Hy, hy sterf weens 'n gebrek aan vermaning, en deur die omvang van sy sotheid, verdwaal hy. My seun, as jy vir jou medemens borg gestaan het, vir 'n vreemde jou hand gegee het, as jy in 'n strik getrap het deur die woorde van jou mond, vasgevang is deur die woorde van jou mond, doen dan dit, my seun, om jouself te bevry, want jy het in die palm van jou medemens se hand beland: Gaan – verneder jouself! Loop reguit op jou medemens af! Laat jou oë nie toe om te slaap, en jou ooglede om in te sluimer nie. Ruk jouself los soos 'n gasel uit die hand van 'n jagter, soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger. Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys. Hy wat nie 'n •aanvoerder, opsiener of heerser het nie, berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel. Hoe lank, luiaard, gaan jy nog bly lê? Wanneer gaan jy opstaan uit jou slaap? 'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man. 'n Deugniet van 'n mens, 'n boosdoener, is hy wat met 'n mond vol valsheid rondloop, wat met sy oë knik, tekens gee met sy voete, beduie met sy vingers, met 'n verdorwe hart die hele tyd kwaad stig en tweedrag saai. Daarom, onverwags kom sy teenspoed – plotseling word hy verpletter, sonder herstel. Daar is ses dinge waarin die Here 'n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë, 'n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, 'n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers. My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie. Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek. Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou. Want 'n gebod is 'n lamp, en onderrig is 'n lig. Die pad na die lewe is teregwysing deur vermaning, om jou te beskerm teen 'n slegte vrou, teen die gladde tong van 'n vreemde vrou. Moenie haar skoonheid in jou hart begeer nie, en moenie toelaat dat sy jou vang met haar wimpers nie. Ja, die prys vir 'n prostituut is soveel as die prys van 'n ronde brood, maar iemand anders se vrou – sy maak jag op 'n kosbare lewe. Kan 'n man vuur in die vou van sy kleed dra, maar sy klere raak nie aan die brand nie? As 'n man op gloeiende kole loop, sal sy voete dan nie verskroei nie? So gaan dit met hom wat by die vrou van sy medemens ingaan. Niemand wat haar aanraak, sal ongestraf bly nie. Verag mense nie 'n dief as hy steel nie, al is dit om sy eetlus te bevredig wanneer hy honger is? En word hy uitgevang, moet hy dit sewevoudig vergoed; al die besittings in sy huis moet hy dan oorhandig. Hy wat owerspel pleeg met 'n vrou, is sonder verstand; wie sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets. Slae en skande sal hy op die lyf loop, en sy bespotting sal nie uitgewis word nie. Want jaloesie wek 'n man se woede, en hy sal genadeloos wees op die dag van wraak. Hy sal nie geneë wees tot enige omkoopgeld nie, ook nie inwillig wanneer die afkoopsom verhoog word nie. My seun, neem my woorde ter harte; en my opdragte, hou dit veilig by jou. Kom my opdragte na, dan sal jy leef; ja, koester my onderrig soos die appel van jou oog. Bind dit aan jou vingers, skryf dit op die tafel van jou hart. Sê vir wysheid: “Jy is my suster!” En noem insig bloedfamilie, sodat dit jou beskerm teen 'n vreemde vrou, teen 'n uitlander met haar vleitaal. Want deur die venster van my huis, deur my latwerk, het ek afgekyk; en ek sien toe daar by die onkundiges, ja, ek merk toe onder die seuns 'n jong man sonder verstand, wat die stegie by haar hoek oorsteek, wat op pad na haar huis stap teen skemeraand, toe die nag en donker begin toesak. Kyk, toe is daar 'n vrou wat hom tegemoetgaan, met die drag van 'n prostituut, en met 'n listige hart. Sy is altyd luidrugtig en koppig. In haar huis is haar voete nie tuis nie; sy is nou op straat, dan weer op die dorpspleine, en op elke straathoek is sy op die loer. Sy gryp hom en soen hom; met 'n onbeskaamde gesig sê sy vir hom: “ Daar is •maaltydoffers by my; vandag het ek my geloftes betaal. Daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet; ek was op die uitkyk vir jou, en ek het jou gekry. Met dekens het ek my slaapbank opgemaak, met geborduurde linne uit Egipte. Ek het my slaapplek besprinkel met mirre, adelhout en kaneel. Kom, laat ons ons versadig drink aan die liefdespel tot die môre toe, laat ons swelg in die liefdesgenot. Want my man is nie tuis nie; hy het op reis gegaan, ver weg. Hy het die sak met geld met hom saamgeneem; teen die tyd van volmaan sal hy eers huis toe kom.” Sy verlei hom met haar stortvloed oortuigende woorde, met haar gladde mond haal sy hom oor. Hy loop dadelik agter haar aan; soos 'n bees na die slagplek gaan hy in, met die huppel van 'n rooitakbok op pad na 'n vangstrik – totdat 'n pyl sy lewer deurboor – soos 'n voël hom haas na 'n net; maar hy weet nie dit gaan sy lewe kos nie. Daarom, seuns, luister na my, en slaan ag op die woorde uit my mond. Laat jou hart nie afdraai na haar weë nie; moenie op haar paaie ronddwaal nie. Ja, baie gesneuweldes het sy laat val, en talryk is al haar slagoffers. Paaie na die •doderyk is haar huis; hulle lei af na die binnekamers van die dood. Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie? Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem. Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit: “Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders. Kry tog insig in vernuf, onverstandiges; onnoseles, bring die hart tot insig! Luister, want oor gepaste dinge praat ek – en oor my lippe kom wat reg is. Want die waarheid, dit verkondig my mond, en afstootlik vir my lippe is goddeloosheid. Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie; dit is alles duidelik vir wie insig toon, en gepas vir hulle wat kennis verwerf. Aanvaar my vermaning, en nie silwer nie, aanvaar kennis eerder as goud.” Ja, Wysheid is beter as koraal, en niks wat begeerlik is, kan met haar vergelyk word nie. “ Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek. Ontsag vir die Here is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, 'n verkeerde pad en 'n verdorwe mond haat ek. Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol. “Die Here, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland. Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa; toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het; toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het, was ek 'n lieflingskind aan sy sy – ek was dag ná dag sy vreugde, terwyl ek die hele tyd voor Hom speel. Terwyl ek op die bewoonbare deel van sy aarde speel, het ek vreugde gevind in die mensekinders. “ Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly. Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie. Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here. Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.” Wysheid het haar huis gebou, sy het haar sewe pilare uitgekap. Sy het haar slaggoed geslag, haar wyn gemeng, en ook haar tafel voorberei. Sy het haar diensmeisies gestuur; sy roep uit vanaf die hoogste plekke in die stad: “Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: “Kom, eet van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het! Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig! “Wie 'n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie 'n goddelose teregwys, kry 'n klad op sy naam. Moenie 'n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys 'n wyse tereg, en hy sal jou liefhê. Gee aan 'n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan 'n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig. “Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.” Vrou Dwaasheid is luidrugtig, onbesonne, en weet niks. Sy sit by die ingang na haar huis, op 'n troon op die hoogste plek in die stad, om te roep na hulle wat op die pad verbygaan, wat reguit loop op hulle paaie: “Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: “Gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is smaaklik.” Maar hy weet nie dat die skimme daar is nie; in die dieptes van die •doderyk is haar genooides. Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan. Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood. Die Here laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy. 'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk. Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot. Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val. Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val. 'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings. Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand. Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede. Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg. Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas. By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig. Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd. Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand. Die seën van die Here – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie. Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens. Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die Here verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. Die weg van die Here is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny. Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde. 'n Vals weegskaal is vir die Here afstootlik, maar 'n egte gewig geniet sy goedkeuring. As verwaandheid kom, kom skande, maar by beskeie mense is daar wysheid. Die onkreukbaarheid van opregtes lei hulle, maar die verdorwenheid van verraderlikes vernietig hulle. Rykdom baat niks in 'n tyd van gramskap nie, maar regverdigheid red van die dood. Die regverdigheid van dié wat onberispelik is, maak sy pad gelyk, maar deur sy goddeloosheid val 'n goddelose. Die regverdigheid van opregtes red hulle, maar deur die wispelturigheid van verraderlikes word hulle self gevang. By die dood van 'n goddelose is sy hoop daarmee heen, en die verwagting wat rykdom bied, verlore. Die regverdige word uit nood bevry, en 'n goddelose neem dan sy plek in. Met die mond vernietig 'n ongelowige sy medemens, maar deur kennis word regverdiges bevry. Oor die voorspoed van regverdiges is 'n dorp verheug, en wanneer goddeloses ten gronde gaan, is daar jubelkrete. Deur die seën van opregtes bereik 'n dorp hoogtes, maar deur die mond van goddeloses word dit afgebreek. Wie sy naaste verkleineer, is sonder verstand, maar iemand met insig bly stil. Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime, maar 'n betroubare persoon hou die saak verborge. Sonder leierskap val 'n volk, maar oorwinning lê by baie raadgewers. Iemand sal beslis skade ly wanneer hy vir 'n vreemde borg staan; wie 'n weersin het in die gee van handdrukke, is veilig. 'n Bekoorlike vrou palm eer in, maar geweldenaars palm rykdom in. Wie troue liefde betoon, doen goed aan homself; 'n hartelose mens stort homself in die ongeluk. 'n Goddelose maak bedrieglike wins, maar wie geregtigheid saai, kry 'n egte beloning. Egte regverdigheid is gerig op die lewe, maar wie kwaad najaag, stuur af op sy dood. Mense met geslepe harte is vir die Here afstootlik, maar dié met 'n onbesproke lewenspad geniet sy goedkeuring. Dit staan vas: Kwaad bly nie ongestraf nie, maar die nakomelinge van regverdiges kom vry. 'n Goue ring aan 'n vark se snoet – so is 'n vrou wat mooi is, maar goeie oordeel prysgee. Wat regverdiges begeer, strek net ten goede, maar die hoop van goddeloses bring gramskap. Daar is iemand wat uitdeel, en hy verkry steeds meer, en een wat meer as wat nodig is, terughou – net om gebrek te ly. 'n Gulhartige persoon geniet oorvloed, en wie 'n ander se dors les, kry self ook genoeg te drinke. Wie graan terughou – die mense vervloek hom, maar seën rus op die kop van iemand wat koring te koop aanbied. Wie die goeie voor oë het, soek aanvaarding, maar wie kwaad nastreef – dit haal hom in. Wie op sy rykdom vertrou, val self, maar soos groen blare spruit regverdiges uit. Wie rampspoed oor sy huis bring, erf wind, en 'n sot word die slaaf van 'n verstandige mens. Die vrug van 'n regverdige is 'n boom van lewe, maar geweld neem lewens weg. As 'n regverdige op aarde vergeld word, hoeveel te meer 'n goddelose en 'n sondaar! Wie vermaning liefhet, het kennis lief, maar wie teregwysing haat, is dom. 'n Goeie mens geniet die Here se goedkeuring, maar iemand met slinkse planne veroordeel Hy. 'n Mens kan nie bestendig wees deur goddeloosheid nie, en die wortel van regverdiges kan nie losgeskud word nie. 'n Knap vrou is 'n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is 'n vrou wat skande maak. Die planne van regverdiges is reg, maar die leiding van goddeloses is bedrieglik. Die woorde van goddeloses is 'n hinderlaag tot bloedvergieting, maar die monde van opregtes red hulle. Goddeloses word omvergewerp en is nie meer daar nie, maar die huis van regverdiges bly staan. Ooreenkomstig sy skranderheid word 'n man geprys, maar iemand met 'n verwarde hart is uitgelewer aan veragting. Wie gering geag word, maar tog 'n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar 'n gebrek aan brood het. 'n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand. 'n Goddelose vind vreugde in 'n vangnet van booshede, maar die wortel van regverdiges is goed gevestig. In 'n oortreding met die lippe lê die valstrik vir 'n bose mens, maar 'n regverdige ontkom aan benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy met die goeie versadig, en die werk van 'n mens se hande vergoed hom. Die pad van 'n sot is reg in sy eie oë, maar 'n wyse luister na raad. 'n Sot laat dadelik sy misnoeë blyk, maar 'n slim mens sien belediging oor die hoof. 'n Betroubare getuie bring na vore wat reg is, maar 'n vals getuie net wat bedrieglik is. Daar is skinderpraatjies wat soos dolksteke is, maar die tong van wyses is 'n geneesmiddel. 'n Betroubare lip hou stand vir altyd, maar 'n vals tong net vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van hulle wat kwaad beplan, maar vir hulle wat vrede aanbeveel, is daar vreugde. Geen onreg sal die regverdiges tref nie, maar goddeloses het onheil in oormaat. Afstootlik vir die Here is vals lippe, maar hulle wat betroubaar optree, geniet sy goedkeuring. 'n Slim mens hou sy kennis verborge, maar die harte van dwase roep uit: “Sotheid!” Die hand van vlytiges sal regeer, maar trae hande is bestem vir dwangarbeid. Kommer in die hart van 'n mens maak die hart neerslagtig, maar 'n vriendelike woord beur dit op. 'n Regverdige soek sy vriende uit, maar die pad van goddeloses lei hulle op 'n dwaalspoor. 'n Trae persoon braai nie sy wild nie, maar vir 'n vlytige mens is besittings kosbaar. Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat 'n wrok koester, lei na die dood. 'n Wyse seun aanvaar die vermaning van 'n vader, maar 'n spotter gee nie gehoor aan 'n dreigement nie. Van die vrug van iemand se mond kan hy iets goeds eet, maar verraderlike mense het 'n begeerte na geweld. Wie sy mond bewaak, beskerm sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom wag daar ondergang. 'n Luiaard – sy keel begeer, en daar is niks, maar die keel van vlytiges geniet oorvloed. In vals woorde het 'n regverdige 'n weersin, maar 'n goddelose gedra hom stink en tree skandelik op. Geregtigheid bewaak 'n onberispelike leefwyse, maar goddeloosheid werp 'n sondaar omver. Daar is iemand wat hom ryk voordoen, maar heeltemal niks het nie, en iemand wat hom arm voordoen, maar baie besittings het. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar 'n arme hoor nie sulke dreigemente nie. Die lig van regverdiges straal vreugde uit, maar die lamp van goddeloses word uitgedoof. Verwaandheid gee net rusie af, maar by hulle wat raad aanvaar, is daar wysheid. Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit. Onvervulde hoop maak die hart siek, maar 'n vervulde wens is 'n boom van lewe. Wie 'n opdrag met minagting bejeën – van hom word 'n pand geneem, maar wie 'n bevel eerbiedig, hy sal vergoed word. Die onderrig van 'n wyse is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. Goeie begrip wen guns, maar die pad van verraderlike mense is onveranderlik. Elke slim mens tree met oorleg op, maar 'n dwaas sprei sy sotheid oop. 'n Goddelose boodskapper stort self in die ongeluk, maar 'n betroubare gesant is 'n gerusstelling. Armoede en skande lê voor vir wie vermaning in die wind slaan, maar wie op teregwysing ag slaan, word geëer. 'n Wens wat waar word, is soet vir die siel, maar dit is afstootlik vir dwase om van die kwaad weg te bly. Wie met wyses saamgaan, sal wys word, maar wie met dwase meng, word benadeel. Onheil agtervolg sondaars, maar regverdiges word deur die goeie beloon. 'n Goeie mens laat sy kleinkinders erf, maar 'n sondaar se eiendom word vir 'n regverdige weggebêre. Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg. Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf. 'n Regverdige eet tot sy honger gestil is, maar die maag van goddeloses bly leeg. Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die Here, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom. In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle. Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit. 'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik. Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie. Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog. Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie. Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet. Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom. Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe. 'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue. Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat. Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking. Slegtes buig neer voor goeies, en goddeloses by die poorte van 'n regverdige. Selfs deur sy medemens word 'n arme gehaat, maar die vriende van 'n ryke is baie. Wie sy medemens verag, sondig; maar wie medelye het met magteloses, is gelukkig. Is hulle wat kwaad beplan nie op 'n dwaalspoor nie, en is troue liefde en waarheid nie bestem vir hulle wat die goeie beplan nie? In alle harde werk is daar voordeel, maar 'n blote gepraat lei net tot gebrek. Die kroon van wyses is hulle rykdom; die sotheid van dwase is blote sotheid. 'n Betroubare getuie red lewens, maar wie leuens uitryg, is bedrieglik. In ontsag vir die Here lê daar sterk vertroue, en vir iemand se kinders bied dit 'n skuilplek. Ontsag vir die Here is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. In 'n oorvloed van mense lê 'n koning se luister, maar in die afwesigheid van 'n volk, lê 'n hooggeplaaste se ondergang. Die geduldige mens is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon. 'n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente. Hy wat 'n arme uitbuit, beledig sy Maker, maar wie hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom. Deur sy boosheid word 'n goddelose omvergewerp, maar 'n regverdige vind 'n skuilplek, selfs by sy dood. In die hart van 'n verstandige rus wysheid; selfs onder dwase is dit bekend. Geregtigheid verhoog 'n nasie, maar sonde is 'n skande vir volke. Die welwillendheid van die koning is daar vir 'n verstandige dienaar, maar sy gramskap is bedoel vir 'n skandemaker. 'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam. Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit. Op elke plek is die oë van die Here, hulle hou slegtes en goeies dop. Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees. 'n Sot versmaai die vermaning van sy vader, maar hy wat teregwysing ter harte neem, is slim. In die huis van 'n regverdige is daar baie voorraad, maar in die opbrengs van 'n goddelose skuil daar teenspoed. Die lippe van wyses strooi kennis uit, maar die hart van dwase is nie so nie. Die offer van goddeloses is afstootlik vir die Here, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. Afstootlik vir die Here is die pad van 'n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 'n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf. Die •doderyk en die onderwêreld lê oop voor die Here – hoeveel te meer die harte van mensekinders! 'n Spotter hou nie daarvan as iemand hom teregwys nie; na wyses sal hy nie gaan nie. 'n Vrolike hart laat die gesig goed lyk, maar by kommer in die hart is die gees neerslagtig. Die hart van 'n verstandige soek kennis, maar die monde van dwase word gevoed met sotheid. Al die lewensdae van 'n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is 'n voortdurende fees. 'n Bietjie, saam met ontsag vir die Here, is beter as 'n groot skat met paniek daarby. 'n Porsie groente met liefde daarby is beter as 'n vetgevoerde bees met haat daarby. 'n Opvlieënde man sit 'n stryery aan die gang, maar 'n geduldige mens bring 'n geskil tot bedaring. Die pad van 'n luiaard is soos 'n doringheining vol dorings, maar die weg van opregtes is gebaan. 'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens minag sy moeder. Sotheid is 'n vreugde vir iemand sonder verstand, maar 'n skerpsinnige mens loop 'n reguit pad. Planne misluk waar daar geen beraadslaging is nie, maar met baie raadgewers hou dit stand. 'n Mens ervaar vreugde met die gepaste antwoord uit sy mond; ja, 'n woord op sy tyd – hoe goed is dit nie! Die weg na lewe lei opwaarts vir 'n verstandige mens, om so die doderyk daar onder te ontwyk. Die Here breek die huis van hovaardiges af, maar die gebied van 'n weduwee baken Hy af. Die planne van 'n bose mens is vir die Here afstootlik, maar vriendelike woorde is suiwer. Wie onregverdige wins maak, stort sy huis in die ongeluk, maar hy wat omkoopgeskenke haat, sal leef. Die hart van 'n regverdige oorweeg hoe om te antwoord, maar die mond van goddeloses stort booshede uit. Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy. Helder oë verheug die hart, 'n goeie berig verfris die liggaam. 'n Oor wat luister na die teregwysing van die lewe, sal by wyses tuis wees. Wie vermaning in die wind slaan, verag sy eie lewe, maar wie na teregwysing luister, verkry verstand. Ontsag vir die Here is 'n vermaning tot wysheid, en nederigheid gaan eer vooraf. 'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die Here. Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die Here. Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou. Die Here het sy doel met alles; selfs 'n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Afstootlik vir die Here is elkeen met 'n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die Here vermy 'n mens die kwaad. Wanneer die Here tevrede is met 'n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 'n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as 'n groot inkomste verkry deur onreg. Die hart van 'n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe. 'n Orakelspreuk is op die lippe van 'n koning; by 'n vonnis mag sy mond nie ontrou wees nie. 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal, is van die Here; al die gewigte in die sak is sy handewerk. Afstootlik vir konings is die pleeg van 'n goddelose daad, want deur geregtigheid staan 'n troon vas. Regverdige lippe stel konings tevrede, en hulle het die een lief wat die regte dinge sê. Die woede van 'n koning is 'n boodskapper van die dood, maar 'n wyse mens bring dit tot bedaring. In die stralende gesig van 'n koning is daar lewe, en sy goedkeuring is soos die wolke van laatreëns. Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer. Die gebaande weg van opregtes is om weg te draai van die kwaad; wie sy lewe wil beskerm, gee ag op sy lewenspad. Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar 'n hooghartige gees. 'n Nederige gees saam met magteloses is beter as om buit te verdeel saam met hovaardiges. Wie hom toespits op 'n saak, sal sukses behaal, en wie op die Here vertrou, is gelukkig. Wie wys van hart is, word verstandig genoem, en soetheid van lippe bevorder onderrig. Begrip is 'n bron van lewe vir die besitters daarvan, maar die vermaning van sotte is sotheid. Die hart van 'n wyse maak sy mond verstandig en bevorder die onderrig op sy lippe. Vriendelike woorde is 'n heuningkoek wat oorloop – soet vir die keel en helend vir die gebeente. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Die eetlus van 'n werker laat hom hard werk; ja, sy mond spoor hom aan. 'n Deugniet grawe onheil uit, en op sy lippe is dit soos 'n versengende vuur. 'n Verdorwe mens ontketen stryd, en 'n kwaadstoker skei boesemvriende. 'n Man van geweld verlei sy medemens, en laat hom 'n pad loop wat nie goed is nie. Wie sy oë toeknyp, is besig om verdorwe dinge te beplan; wie sy lippe saampers, het die kwaad reeds gedoen. 'n Sierlike kroon is grysheid; op die pad van geregtigheid word dit gevind. 'n Geduldige mens is beter as 'n held, en wie sy gees beheers, is beter as iemand wat 'n stad inneem. Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die Here. 'n Stukkie droë brood, met rus daarby, is beter as 'n huis vol •maaltydoffers, met 'n getwis daarby. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en sal saam met die broers deel in die erfenis. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, maar die Here toets harte. 'n Kwaaddoener gee aandag aan lippe vol boosheid; 'n leuenaar spits sy oor vir 'n tong vol vernietiging. Wie 'n arme bespot, beledig sy Maker; wie bly is oor teenspoed, sal nie ongestraf bly nie. Die kroon van oumense is kleinkinders, en die roem van kinders is hulle ouers. Breedsprakigheid pas nie by 'n nikswerd nie – hoeveel minder nog leuentaal by 'n vooraanstaande persoon! 'n Omkoopgeskenk is 'n gelukbringer in die oë van wie dit besit – waar hy hom ook al heen wend, hy gaan sukses behaal! Wie 'n oortreding bedek, streef na liefde, maar wie 'n saak telkens ophaal, skei boesemvriende. 'n Dreigement maak 'n groter indruk op iemand met insig as honderd houe op 'n dwaas. 'n Slegte mens streef net na opstand, en 'n hartelose boodskapper word teen hom uitgestuur. 'n Beer van haar kleintjies beroof kan eerder op 'n mens afkom, as 'n dwaas in sy sotheid. As iemand goed met kwaad vergeld, sal onheil nie sy huis verlaat nie. Die begin van 'n stryd is water wat deurbreek. Laat dit vaar voor die getwis losbars! Hy wat 'n goddelose vryspreek, en hy wat 'n regverdige skuldig verklaar, is albei afstootlik vir die Here. Waarom is daar geld in 'n dwaas se hand? Is dit om wysheid te koop, terwyl hy geen verstand het nie? 'n Vriend betoon te alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood. 'n Mens sonder verstand gee hand; hy staan borg vir sy medemens. Wie van oortreding hou, hou van rusie; wie sy ingang hoog bou, vra vir ineenstorting. Wie 'n valse hart het, vind nie die goeie nie, en wie bedrieglik met sy tong is, beland in die moeilikheid. Wie 'n dwaas verwek – tot verdriet is dit vir hom; en die vader van 'n nikswerd sal geen blydskap ervaar nie. 'n Vrolike hart is goed vir herstel, maar 'n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog. 'n Omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed – 'n goddelose aanvaar dit om die reg te dwarsboom. Iemand met insig hou wysheid voor oë, maar die oë van 'n dwaas is gerig op die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n ergernis vir sy vader, en 'n bitterheid vir haar wat hom in die wêreld gebring het. Om 'n regverdige 'n boete op te lê, is alreeds nie goed nie; om vooraanstaandes te slaan, druis in teen wat reg is. Wie sy woorde terughou is vertroud met kennis, en wie grootmoedig van gees is, is 'n skerpsinnige mens. Selfs 'n sot wat stilbly, word as wys beskou, as verstandig, wanneer hy sy lippe dig hou. Wie hom afsonder, soek sy eie begeerte; teen alle gesonde oordeel ontketen hy 'n stryery. 'n Dwaas het geen sin in verstandigheid nie, maar net sin daarin om sy hart te ontbloot. Wanneer 'n goddelose opdaag, daag veragting ook op, en saam met skande, ook bespotting. Diep water is die woorde uit 'n man se mond; 'n bruisende stroom is 'n bron van wysheid. Om vir 'n dwaas partydig te wees, is nie goed nie; dit is om 'n regverdige in die reg te dwarsboom. Die lippe van 'n dwaas kom met 'n getwis, en sy mond roep om slae. Die mond van die dwaas is sy ondergang, en sy lippe 'n valstrik vir sy lewe. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye – dit gaan af na die binneste van die liggaam. Ook hy wat sloer in sy dagtaak is die broer van 'n opperste verwoester. 'n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; soos 'n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding. Voor ineenstorting is 'n mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan eer vooraf. Wie antwoord voordat hy luister – sotheid is sy deel, en ook vernedering. Die gees van 'n mens dra hom deur siekte, maar 'n neerslagtige gees – wie kan dit opbeur? Die hart van 'n verstandige verkry kennis, en die oor van wyses soek na kennis. Die geskenk van 'n mens skep vir hom ruimte; na die teenwoordigheid van grotes lei dit hom. Die een wat eerste sy saak stel, het skynbaar gelyk, maar sy medemens kom en ondervra hom. Die lot bring 'n einde aan rusie, en hou sterkes uitmekaar. 'n Broer teen wie oortree is, is minder toeganklik as 'n sterk vestingstad, en rusie is soos die sluitbalk van 'n vesting. Van die vrug van 'n mens se mond word sy maag gevul; die opbrengs van sy lippe versadig hom. Dood en lewe is in die mag van die tong, en hulle wat lief is om die tong te gebruik, sal die vrug daarvan eet. Wie 'n vrou gevind het, het die goeie gevind, en geniet die goedkeuring van die Here. 'n Arme praat pleitend, maar 'n ryke antwoord hardvogtig. 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n geliefde vriend wat nader is as 'n broer. 'n Arme wat onberispelik leef, is beter as iemand met vals lippe wat boonop 'n dwaas is. Sonder kennis is selfs ywer nie goed nie, en wie oorhaastig met sy voete is, trap mis. Die sotheid van 'n mens gooi sy lewenspad omver, maar sy hart tier teen die Here. Besittings maak vriende baie meer, maar 'n hulpelose word deur sy vriend verlaat. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en iemand wat leuens uitryg, sal nie vrykom nie. Baie soek die guns van 'n vooraanstaande persoon, en elkeen is die vriend van 'n vrygewige man. 'n Arme se hele familie het 'n weersin in hom; hoeveel te meer sal sy boesemvriend nie van hom af wegbly nie? Hy probeer hulle met woorde bereik, maar hulle is nie daar nie. Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en wie leuens uitryg, gaan ten gronde. Weelde pas nie by 'n dwaas nie – hoeveel minder pas dit 'n slaaf om oor bevelvoerders te heers! Die skranderheid van 'n mens maak hom geduldig, en dit is vir hom 'n eer om 'n oortreding oor te sien. 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die onbeheersde woede van 'n koning; maar soos dou op die gras is sy welwillendheid. 'n Dwase seun is die ondergang van sy vader, en die gekyf van 'n vrou is soos 'n lekkende dak wat aanhou drup. 'n Huis en besittings is 'n erflating van ouers, maar 'n verstandige vrou is van die Here. Luiheid laat iemand wegsink in diepe slaap, en 'n trae persoon ly honger. Wie gebooie nakom, beskerm sy lewe; wie die weë van die Here minag, sal sterf. Wie hom oor 'n arme ontferm, leen aan die Here, en Hy sal hom vergoed vir sy weldaad. Straf jou seun terwyl daar hoop is, maar moenie jouself opsweep, en so sy dood veroorsaak nie. Wie mateloos woedend word, betaal altyd die boete; as jy hom red, sal jy dit weer moet doen. Luister na raad en aanvaar vermaning, sodat jy uiteindelik wys kan wees. Daar is baie planne in 'n mens se hart, maar die raad van die Here – dít kom tot stand. Wat van 'n mens verwag word, is sy troue liefde, en 'n arm mens is beter as 'n leuenaar. Ontsag vir die Here lei tot lewe, en 'n mens gaan versadig slaap; deur 'n ramp word hy nie getref nie. Steek die luiaard sy hand in die skottel, bring hy dit selfs nie eers na sy mond terug nie. Slaan jy 'n spotter, dan word 'n onkundige slim; die teregwysing van 'n verstandige laat hom kennis verstaan. Wie 'n vader geweld aandoen en 'n moeder beseer, is 'n seun wat skande maak en skandelik optree. As jy ophou, my seun, om na vermaning te luister, dan is dit net om te dwaal – weg van die woorde van kennis. 'n Deugniet van 'n getuie maak 'n bespotting van die reg, en die mond van goddeloses verslind boosheid. Vonnisse is gereed vir spotters, en slae vir die rûe van dwase. Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker. Elkeen wat daarvan slinger, is nie wys nie. 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die angs wat 'n koning veroorsaak; wie hom kwaad maak, stel sy lewe in gevaar. Dit is 'n eer vir 'n mens om van 'n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat 'n stryery losbreek. In die winter ploeg 'n luiaard nie; soek hy iets in die oestyd, is daar niks. Diep water is die planne in die hart van 'n man, en 'n skerpsinnige mens sal daaruit put. Baie mense verklaar hulle lojaliteit, maar 'n werklik betroubare man – wie sal hom vind? Iemand wat onberispelik leef, 'n regverdige – gelukkig is sy kinders wat ná hom kom! 'n Koning wat op die regterstoel sit, sif met sy oë al wat sleg is, uit. Wie kan sê: “Ek het my hart skoon gehou, ek is rein van my sonde?” Twee soorte gewigte, twee soorte efas – dit is vir die Here afstootlik. Reeds aan sy dade laat 'n jong man hom ken, of wat hy doen, suiwer en reg is. 'n Oor wat luister en 'n oog wat sien – die Here het ook albei gemaak. Moenie lief wees vir slaap nie, anders verarm jy; as jy jou oë oophou, sal jy jou versadig eet aan brood. “Nikswerd! Nikswerd!” sê die koper; maar as hy wegstap, dan spog hy. Daar is goud en 'n oorvloed aan koraal, maar 'n kosbare versiering is lippe met kennis. Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom! Aangenaam is vir 'n mens die brood verkry deur bedrog, maar daarna is sy mond vol gruis. Planne kom deur beraadslaging tot stand. Voer oorlog met goeie leierskap! Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime; moet dus nie betrokke wees by iemand wat sy lippe oopsper nie. Wie sy vader en moeder vloek – sy lamp word uitgedoof in diepe duisternis. 'n Erfenis aanvanklik oorhaastig verkry, sal uiteindelik nie geseënd wees nie. Moenie sê, “Ek wil die kwaad vergeld” nie; wag op die Here, sodat Hy jou help. Twee soorte gewigte is vir die Here afstootlik, en 'n vals weegskaal is nie goed nie. Die Here bepaal 'n man se treë; en 'n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan? Dit is 'n valstrik vir 'n mens as hy onnadenkend sê, “Heilig!” om dan eers ná die geloftes daaroor na te dink. 'n Wyse koning sif goddeloses uit en laat die dorswiel oor hulle loop. Die asem van die mens is die Here se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste. Troue liefde en waarheid beveilig 'n koning; ja, met troue liefde stut hy sy troon. Die roem van jong manne is hulle krag, en die luister van oumense is grys hare. Snye aan 'n kneuswond suiwer die kwaad uit, en slae die kamers van die binneste. Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil. Elke pad van 'n mens is reg in sy eie oë, maar die Here toets harte. Om te doen wat reg en billik is, is vir die Here verkieslik bo offers. Hoogmoedige oë en 'n verwaande hart – die lamp van goddeloses – is sonde. Die planne van 'n vlytige strek net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, ervaar net gebrek. Die verkryging van skatte deur 'n vals tong is 'n vlugtige damp – dit is strikke van die dood. Die gewelddade van goddeloses sleep hulle weg, want hulle weier om te doen wat reg is. Verdraaid is die pad van 'n oneerlike man, maar 'n onbevlekte – sy optrede is reg. Om op die hoek van 'n dak te woon, is beter as om 'n huis te deel met 'n bakleierige vrou. Die sielsbegeerte van 'n goddelose is boosheid; in sy oë mag geen genade betoon word aan sy medemens nie. Wanneer mens 'n spotter beboet, word 'n onkundige wys; en as mens 'n wyse onderrig, aanvaar hy kennis. Die Regverdige hou 'n goddelose se huis dop; Hy stort goddeloses in die ongeluk. Wie sy ore sluit vir die hulpkreet van 'n arme, sal self ook roep en nie geantwoord word nie. 'n Geskenk in die geheim laat toorn bedaar, en 'n omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed, heftige woede. Dit is 'n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar 'n verskrikking vir boosdoeners. 'n Mens wat afdwaal van die pad wat begrip kweek, sal in die samekoms van skimme tot rus kom. Wie van plesier hou, se voorland is gebrek; wie van wyn en salfolie hou, sal nie ryk word nie. 'n Goddelose word 'n losprys vir die regverdige, en 'n verraderlike mens neem die plek in van opregtes. Om in 'n woestyn te woon, is beter as by 'n vrou wat gedurig kyf en 'n ergernis is. 'n Kosbare skat en olie is in die tuiste van 'n wyse, maar 'n dwase mens verslind syne. Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer. 'n Wyse kan optrek teen 'n stad met helde, en die versterkings laat tuimel waarop die stad vertrou. Wie sy mond en tong bewaar, bewaar sy lewe van benoudhede. 'n Vermetele, aanmatigende mens – Spotter is sy naam – tree met matelose verwaandheid op. Die begeerte van 'n luiaard sal hom sy dood kos, want sy hande weier om iets te doen. Die hele dag sal hy brand van begeerte, terwyl 'n regverdige sal gee en nie terughou nie. Die offer van goddeloses is afstootlik, hoeveel te meer as dit gebring word met 'n slinkse bedoeling! 'n Leuenagtige getuie gaan ten gronde, maar iemand wat luister, mag altyd praat. 'n Goddelose sit 'n brutale gesig op, maar 'n opregte, hy slaan ag op wat hy doen. Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die Here nie. 'n Perd kan afgerig word vir die dag van 'n geveg, maar die oorwinning is van die Here. 'n Goeie naam is verkieslik bo groot rykdom, egte innemendheid bo silwer en goud. Rykes en armes het dít gemeen: Die Here het hulle almal gemaak. 'n Slim mens sien gevaar en skuil, maar onverstandiges gaan voort en betaal die prys. Die beloning vir nederigheid en ontsag vir die Here is rykdom, eer en lewe. Dorings en wippe is op die pad van 'n vals persoon; wie sy lewe wil beskerm, bly ver daarvan weg. Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie. 'n Ryke heers oor armes, en wie leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen. Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. Wie ruimhartig is, sal geseën word, want hy gee van sy brood aan die hulpelose. Dryf 'n spotter weg, dan is stryd by die deur uit, en eise en skandalige optrede hou op. Wie 'n rein hart liefhet, wie innemend praat, sal 'n koning as sy vriend hê. Die oë van die Here bewaak kennis, en die sake van 'n bedrieër werp Hy omver. Die luiaard sê: “Daar is 'n leeu buite! Binne-in die dorpspleine sal ek doodgemaak word!” Die mond van vreemde vroue is 'n diep vangkuil; wie deur die Here verdoem is, sal daarin val. Sotheid wat vas is aan die hart van 'n jong seun – 'n lat wat straf, neem dit ver van hom weg. Wie 'n arm mens uitbuit om vir homself meer te kry, en aan 'n ryk mens geskenke gee – dit lei net tot gebrek. Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis! Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe. Met die oog daarop dat jou vertroue op die Here sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou. Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie? Moenie 'n arme beroof omdat hy arm is nie, en moenie die magtelose vertrap in die poort nie, want die Here sal hulle regstryd voer en van hulle plunderaars die lewe plunder. Moenie vriende maak met 'n humeurige mens nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie; anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só 'n valstrik vir jouself. Moenie onder dié wees wat hand gee, wat vir skulde borg staan nie. As jy dalk niks het om te betaal nie, waarom moet iemand jou bed onder jou uit neem? Moenie ou grense verskuif wat jou voorouers gelê het nie. Sien jy 'n man wat knap is in sy werk? Voor konings sal hy in diens staan; hy sal nie in diens van onaansienlikes staan nie. Wanneer jy gaan sit om saam met 'n heerser te eet, wees besonder bedag op wie voor jou is. Sit 'n mes teen jou keel as jy 'n groot eetlus het. Moenie sy lekkernye begeer nie, want dit is misleidende kos. Moet jou nie afsloof om ryk te word nie, jy behoort van beter te weet – hou op daarmee! Sou jy jou oë net daarop rig? Dit is reeds weg! Want dit kry beslis vlerke; soos 'n arend vlieg dit weg in die lug. Moenie die brood van 'n gierigaard eet nie, en moenie sy lekkernye begeer nie. Want in sy binneste maak hy somme; dit is hoe hy is. “Eet en drink!” sê hy vir jou, maar sy hart is nie by jou nie. Jou krieseltjie wat jy geëet het – jy gaan dit opgooi, en jou aangename woorde het jy dan verspil. Moenie direk met 'n dwaas praat nie, want jou verstandige woorde sal hy met minagting bejeën. Moenie ou grense verskuif nie, en in die landerye van vaderloses moet jy nie kom nie. Want hulle losser is sterk; Hy sal hulle regstryd teen jou voer. Rig jou hart op vermaning, en jou oor op woorde van wysheid. Moenie straf van 'n jong seun weerhou nie; as jy hom met 'n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met 'n lat, maar jy red sy lewe van die •doderyk. My seun, as jou hart wys is, is ook my hart verheug. My binneste sal jubel wanneer jou lippe praat wat reg is. Jou hart moet nie opgewonde raak oor sondaars nie, maar wees die hele tyd opgewonde oor ontsag vir die Here. Daar is beslis 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. As jy luister, my seun, sal jy wys word en sal jy jou hart op die regte pad lei. Moet jou nie met die wynvlieë ophou nie, met dié wat hulle aan vleis ooreet nie. Want 'n dronklap en 'n vraat sal verarm, en lomerigheid laat mens vodde dra. Luister na jou vader, hy wat jou verwek het; en moet jou moeder nie minag wanneer sy oud geword het nie. Verkry waarheid, en moet dit nie verkwansel nie, ook wysheid, vermaning en insig. Die vader van 'n regverdige jubel uitbundig; wie 'n wyse seun verwek, sal oor hom verheug wees. Mag jou vader en moeder blydskap ervaar; mag sy wat jou in die wêreld gebring het, jubel. Gee my jou hart, my seun, en laat jou oë vreugde vind in my paaie. want 'n prostituut is 'n diep vangkuil, en 'n vreemde vrou is 'n nou put. Ook sy lê 'n man voor soos 'n rower; sy maak die ontroues onder mense meer. By wie is daar smart? By wie is daar ellende? By wie is daar 'n gekyf? By wie is daar klagtes? By wie is daar onnodige wonde? By wie is daar bloedbelope oë? Dit is by hulle wat agterbly by die wyn, by hulle wat ingaan om gemengde wyn te bly proe. Moenie na wyn kyk wanneer dit rooi skyn, sy glans in die beker gee nie – dit vloei te glad af! Agterna pik dit soos 'n slang en spuit gif soos 'n kobra. Dan sien jou oë vreemde goed, en jou hart praat verdorwe dinge. Jy sal wees soos een wat lê op die oop see, soos een wat lê op die top van 'n skip se takelwerk. Jy sal dink: Hulle het my geslaan, maar ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my afgeransel, maar ek het niks gemerk nie. Wanneer word ek wakker? Ek wil dit weer gaan soek. Moenie slegte mense beny nie, en begeer nie om by hulle te wees nie; want hulle harte oorpeins verwoesting, en hulle lippe praat oor die aanrig van skade. Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstandigheid word dit gevestig. Deur kennis word kamers gevul met allerlei kosbare en lieflike dinge. 'n Wyse man het mag, en 'n man met kennis maak krag meer doeltreffend. Want deur goeie leierskap kan jy oorlog voer, en oorwinning kom deur baie raadgewers. Wysheid is onbereikbaar vir 'n sot; in die stadspoort maak hy sy mond nie oop nie. Wie planne beraam om kwaad te doen, word 'n aartsknoeier genoem. 'n Sotlike plan is sonde, en 'n spotter is vir 'n mens afstootlik. Gedra jy jou lafhartig in 'n tyd van nood, dan is jou krag beperk. Red hulle wat weggeneem word na die dood, dié wat na die slagplek strompel – moenie terughou nie! As jy sê, ‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’ sal Hy wat harte beoordeel, sal Hy nie daaraan aandag gee nie? En Hy wat jou lewe beskerm, sal Hy dit nie weet nie? Hy sal 'n mens vergeld ooreenkomstig sy dade. My seun, eet heuning, want dit is goed, en heuningkoek is soet in jou mond. Besef dan, só is wysheid vir jou lewe – as jy dit vind, is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. Moenie soos 'n goddelose die tuiste van 'n regverdige dophou nie; moenie sy rusplek verwoes nie. Want 'n regverdige sal sewe keer val en opstaan, maar goddeloses kom tot 'n val deur teenspoed. Wanneer jou vyand val, moet jou nie verheug nie; wanneer hy tot 'n val kom, laat jou hart nie jubel nie. Anders sien die Here dit, en is dit verkeerd in sy oë; dalk wend Hy sy toorn van hom af. Moet jou nie ontstel oor kwaaddoeners nie; moet goddeloses nie beny nie. Want daar is nie 'n toekoms vir slegte mense nie; die lamp van goddeloses word uitgedoof. Jy moet ontsag hê vir die Here my seun, en vir die koning; met hulle wat andersgesind is, moet jy jou nie inlaat nie. Want onverwags tref teenspoed hulle, en wie weet watter ramp die Here en die koning kan bring? Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie. Wie vir 'n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem. Maar dit gaan goed met dié wat 'n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed. Wie eerlike antwoorde gee, is soos 'n soen op die lippe. Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis. Moenie sonder gronde as getuie optree teen jou medemens nie! Sal jy met jou lippe mislei? Moet dít nie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen; ek gaan die man vergeld ooreenkomstig sy optrede.” By die land van 'n lui mens het ek verbygeloop, en by die wingerd van 'n mens sonder verstand. Kyk, dit was heeltemal toegegroei onder brandnetels, die grond was oortrek met onkruid, en sy klipmuur was afgebreek. Ek het dit bekyk en ter harte geneem; ek het dit gesien en as 'n vermaning aanvaar: 'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man. Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer. Dit is tot die eer van God om 'n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om 'n saak te deurvors. Soos die hoogte van die hemel en die diepte van die aarde, is die hart van konings ondeurgrondelik. Verwyder die metaalskuim uit silwer, dan kom daar reeds 'n kruik uit vir die silwersmid. Verwyder 'n goddelose voor die koning, dan is sy troon reeds in geregtigheid gevestig. Moenie grootpraat voor die koning, en moenie gaan staan op die plek van grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word, “Kom op hierheen!” as dat jy verneder word voor 'n vooraanstaande. Wat jou oë gesien het, moet jy nie haastig voor die gereg bring nie; wat sal jy uiteindelik doen as jou medemens jou verneder? Voer jou regstryd teen jou medemens, maar iemand anders se geheim moet jy nie openbaar nie; anders sal hy wat dit hoor, jou in die skande steek, en die skinderstories oor jou nie ophou nie. Goue appels in silwermonterings, so is 'n woord uitgespreek op die gepaste tyd. 'n Goue ring en 'n sieraad van fyngoud, so is 'n wyse teregwyser vir die oor wat luister. Soos die afkoeling deur sneeu op 'n oesdag is 'n betroubare boodskapper vir die een wat hom gestuur het; hy verkwik die siel van sy heer. Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is 'n man wat spog oor 'n geskenk waaroor hy lieg. Met geduld word 'n •aanvoerder oorreed, en 'n sagte tong breek gebeentes. As jy heuning vind, eet net tot jy genoeg het, anders kry jy te veel daarvan in en bring dit op. Sit jou voet selde in jou medemens se huis, anders kry hy te veel van jou en ontwikkel 'n weersin in jou. 'n Hamer en 'n swaard en 'n skerp pyl, so is iemand wat as 'n vals getuie teen sy medemens getuig. 'n Tand wat breek en 'n voet wat swik, so is vertroue op 'n verraderlike mens in 'n tyd van nood. Soos hy wat op 'n koue dag klere uittrek, of asyn op soda gooi, so is iemand wat liedere sing vir 'n treurige hart. As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet, en as hy dors is, gee hom water om te drink; want jy stapel vurige kole op sy kop, en die Here sal jou beloon. Die noordewind bring reën, en 'n tong wat skinder, verontwaardigde gesigte. Om op die hoek van 'n dak te woon, is beter as om 'n huis te deel met 'n bakleierige vrou. Koel water in 'n dorstige keel, so is goeie nuus uit 'n ver land. 'n Modderige fontein, 'n besoedelde bron, so is 'n regverdige wat swig voor 'n goddelose. Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, en die soeke na eie eer is oneervol. 'n Stad wat deurbreek is, sonder 'n stadsmuur, so is iemand sonder selfbeheersing. Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd, so is eer nie gepas vir 'n dwaas nie. Soos 'n voëltjie rondfladder, soos 'n swaeltjie wegvlieg, so is 'n onverdiende vervloeking – daar kom niks van nie. 'n Sweep is vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie, en 'n lat is vir die rug van dwase. Moenie 'n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy. Antwoord 'n dwaas in ooreenstemming met sy sotheid, anders is hy wys in sy eie oë. Iemand wat sy eie voete afkap, geweld indrink, is hy wat boodskappe stuur met 'n dwaas. Die bene van 'n verlamde hang slap, so is 'n spreuk in die mond van dwase. Soos om 'n klip in 'n slingervel vas te bind, so is hy wat aan 'n dwaas eer bewys. 'n Doring wat in 'n dronk mens se hand gesteek het, so is 'n spreuk in die mond van dwase. 'n Boogskutter wat alles wond, so is hy wat 'n dwaas huur, wat verbygangers huur. Soos 'n hond wat terugkeer na sy braaksel, so is 'n dwaas wat sy sotheid herhaal. Sien jy 'n mens wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom. Die luiaard sê: “Daar is 'n jong leeu in die pad, 'n leeu êrens tussen die dorpspleine!” 'n Deur draai op sy skarnier en 'n luiaard op sy bed. 'n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring. 'n Luiaard is in sy eie oë wyser as sewe mense wat sinvol antwoord. Iemand wat 'n hond aan sy ore gryp, so is 'n verbyganger wat hom vererg oor 'n geskil wat hom nie aangaan nie. Soos 'n waansinnige wat brandpyle, dodelike pyle, rondskiet, so is iemand wat sy vriend bedrieg en dan sê: “Ek het maar net 'n grap gemaak.” Sonder hout gaan 'n vuur dood, en in die afwesigheid van 'n kwaadstoker raak 'n stryery stil. Gloeiende kole vir houtskool, hout vir 'n vuur, dit is 'n twissieke man by die aanblaas van 'n geskil. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye – dit gaan af na die binneste van die liggaam. Soos glasuur wat op 'n potskerf aangebring is, so is vurige lippe en 'n bose hart. Met sy lippe verbloem 'n hater hom, maar in sy binneste huisves hy bedrog. As hy sy stem innemend maak, moet jy hom nie vertrou nie; want daar is sewe afskuwelikhede in sy hart. Al word sy haat deur misleiding verberg, sy boosheid sal in die byeenkoms onthul word. Wie 'n vanggat grawe, val self daarin, en wie 'n klip rol, na hom kom dit terug. 'n Vals tong haat dié wat hy verpletter het, en 'n gladde mond bewerk 'n ramp. Moenie spog oor die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat 'n vreemde jou prys, en nie jou eie mond nie, 'n buitestander, en nie jou eie lippe nie. 'n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur 'n sot is swaarder as albei. Woede is wreed en toorn oorweldigend, maar wie kan staande bly voor jaloesie? 'n Openlike teregwysing is beter as liefde in die geheim. Die wonde deur 'n geliefde toegedien, word opreg bedoel, maar oordrewe is die soene van iemand wat haat. 'n Persoon wat versadig is, vertrap 'n heuningkoek, maar vir 'n honger persoon is alles wat bitter is, soet. Soos 'n voël wat rondswerf weg van sy nes af, so is iemand wat rondswerf ver van sy woonplek af. Olie en reukwerk maak die hart bly, maar die •siel word uitmekaar geskeur deur teenspoed. Jou vriend en die vriend van jou vader moet jy nie verlaat nie, en in die huis van jou broer moet jy nie kom op die dag van jou teenspoed nie; 'n buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is. Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek die een wat my beledig, 'n antwoord kan gee. 'n Slim mens sien gevaar en soek skuiling, maar onverstandiges gaan voort en moet die prys betaal: “Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom!” Wie sy vriend luidrugtig seën toewens in die vroeë oggend – dit sal hom as 'n vervloeking toegereken word. 'n Lekkende dak wat aanhou drup op 'n dag van stortreën, en 'n vrou wat rusie maak, is presies dieselfde. Wie aan haar skuiling bied, bied aan die wind skuiling, en sy regterhand vat in olie. Yster slyp yster, en een mens slyp die aard van 'n ander. Wie 'n vyeboom versorg, sal sy vrugte eet, en wie na sy meerdere omsien, sal geëer word. Soos water 'n gesig weerspieël, so weerspieël die hart van 'n mens hom. Die •doderyk en die onderwêreld word nie versadig nie, en die oë van 'n mens word ook nie versadig nie. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, en 'n man word beoordeel volgens die lof wat hy ontvang. Selfs as jy 'n sot tussen garskorrels in 'n stampblok stamp met 'n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie. Let goed op die voorkoms van jou kleinvee; gee aandag aan jou veetroppe, want rykdom hou nie vir altyd nie. Of sal 'n kroon altyd daar wees van geslag tot geslag? Wanneer die hooi verwyder is, die jong gras verskyn, en die voer uit die heuwels versamel is, is die jong ramme daar vir jou bokleed, en die bokramme vir die prys van 'n saailand. Daar sal genoeg bokmelk wees as kos vir jou, as kos vir jou huis, en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies. 'n Goddelose vlug sonder dat iemand hom agtervolg, maar regverdiges is vol vertroue, soos 'n jong leeu. Wanneer 'n land oortree, is daar baie •aanvoerders, maar deur die toedoen van iemand met insig en kennis sal dit wat reg is, voortduur. 'n Man wat arm is en armes uitbuit, is soos reën wat verspoel – dan is daar geen brood nie. Dié wat die wet verontagsaam, prys goddeloses, maar dié wat die wet nakom, staan hulle teë. Slegte mense verstaan nie wat reg is nie, maar hulle wat die Here soek, verstaan alles. 'n Arme wat onberispelik leef, is beter as 'n vals persoon wat op twee paaie loop terwyl hy ryk is. Wie hou by die wet, is 'n seun met insig; wie egter met roekeloses meng, steek sy vader in die skande. Wie sy rykdom vermeerder deur rente en woekerrente – hy maak dit net bymekaar vir iemand wat hom oor armes ontferm. Wie sy oor wegdraai, sodat hy nie na die wet hoef te luister nie – selfs sy gebed is afstootlik. Hy wat opregtes laat afdwaal op 'n verkeerde pad, sal self in sy vanggat val; maar hulle wat onberispelik is, sal die goeie in besit neem. 'n Ryk man is wys in sy eie oë, maar 'n arme met insig sien deur hom. Wanneer regverdiges jubel, is die roem groot; maar wanneer goddeloses oorneem, kruip die mense weg. Wie sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie; maar hy wat dit bely en dit laat vaar, ervaar ontferming. Gelukkig is 'n mens wat voortdurend ontsag koester vir God! Maar wie sy hart verhard, stort in die ellende. 'n Leeu wat grom, en 'n beer wat aangestorm kom, so is 'n goddelose wat heers oor 'n arm volk. 'n •Leier wat 'n groot uitbuiter is, het 'n gebrek aan insig; hulle wat egter 'n weersin het in onregverdige wins, sal lank bly leef. 'n Mens belas met die bloed van 'n ander, sal moet vlug, tot die dood toe – mense moet hom nie ondersteun nie. Wie onberispelik leef, ontvang hulp; maar wie twee krom paaie volg, sal op een tot 'n val kom. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood; maar wie nietighede najaag, sal hom versadig eet aan armoede. 'n Betroubare man ervaar baie seëninge; maar wie vinnig ryk wil word, sal nie ongestraf bly nie. Om partydig te wees, is nie goed nie; vir 'n stukkie brood kan 'n man oortree. 'n Gierigaard is oorywerig om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek vir hom voorlê nie. Wie 'n mens teregwys, ervaar daarna goedgesindheid, meer as hy wat vlei met die tong. Wie sy vader en moeder beroof en sê, “Dit is geen oortreding nie”, is die bondgenoot van 'n verwoester. 'n Gulsige persoon sit 'n stryery aan die gang; maar wie op die Here vertrou, gedy. Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas; maar wie met wysheid leef, hy kom vry. Wie aan 'n arme gee, ly geen gebrek nie; maar wie sy oë sluit, word baie vervloek. Wanneer goddeloses oorneem, soek mense skuiling; maar wanneer goddeloses omkom, word die regverdiges meer. Iemand wat ná teregwysings hardnekkig bly, sal onverwags verpletter word, sonder kans op herstel. Wanneer regverdiges meer word, is die volk verheug; maar wanneer goddeloses heers, sug 'n volk. Iemand wat wysheid liefhet, verheug sy vader; maar wie met prostitute deurmekaar raak, vernietig rykdom. 'n Koning hou deur die reg 'n land in stand; maar hy wat heffings oplê, breek dit af. 'n Man wat sy medemens vlei, span 'n vangnet vir sy eie voete. In die oortreding van 'n bose mens lê daar 'n valstrik, maar 'n regverdige juig en is bly. 'n Regverdige is bedag op die regte van armes; 'n goddelose verstaan nie sulke kennis nie. Spotters blaas oproer aan in 'n stad, maar wyses bring toorn tot bedaring. As 'n wyse mens betrokke raak in 'n hofsaak met 'n sot, is die sot senuweeagtig en giggel sonder ophou. Mense wat bloed vergiet, haat 'n onberispelike mens; maar opregtes, hulle is begaan oor sy lewe. 'n Dwaas gee vrye teuels aan al sy gevoelens, maar 'n wyse bedwing sy gevoelens uiteindelik. 'n Heerser wat luister na leuentaal – almal wat in sy diens is, is goddeloos. Die arme en onderdrukker het dít gemeen: Die Here gee lig aan albei se oë. 'n Koning wat armes billik oordeel – sy troon sal vir altyd standhou. 'n Lat en teregwysing gee wysheid; maar 'n jong seun aan homself oorgelaat, steek sy moeder in die skande. Wanneer goddeloses meer word, neem oortredings toe; maar regverdiges sal hulle val beleef. Straf jou seun, dan sal hy jou rus gee; hy sal aan jou lewe genot verskaf. Wanneer daar geen profetiese visioen is nie, raak 'n volk bandeloos; maar wanneer hulle die wet nakom, is hulle gelukkig. Deur woorde alleen laat 'n slaaf hom nie bestraf nie; al verstaan hy dit, hy reageer nie daarop nie. Het jy al iemand gesien wat oorhaastig is met sy woorde? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom. Bederf iemand sy slaaf van jongs af, sal hy later opstandig wees. 'n Opvlieënde mens sit 'n stryery aan die gang, en 'n heethoof het baie oortredings. Die verwaandheid van 'n mens sal hom verneder; maar hy wat nederig is, sal eer ontvang. Wie met 'n dief buit deel, haat sy eie lewe; hy hoor die vervloeking, maar maak tog niks bekend nie. Die vrees vir mense word 'n valstrik; maar wie op die Here vertrou, word beskerm. Baie mense soek guns by 'n heerser, maar 'n mens se reg kom van die Here. 'n Oneerlike mens is afstootlik vir regverdiges; maar wie opreg is in sy optrede, is afstootlik vir 'n goddelose. Die woorde van Agur, seun van Jake. Uitspraak van God. Dit is die uitspraak van die man: Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan. Want ek is dommer as enigiemand; ek het nie die verstand van 'n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige het ek nie. Wie het opgegaan na die hemel en afgekom? Wie het die wind bymekaargemaak in die holte van sy twee hande? Wie het die water in 'n oorkleed saamgebind? Wie het al die uithoeke van die aarde vasgestel? Wat is sy naam? En wat is sy seun se naam, as jy dit weet? Elke woord van God is gelouter; 'n skild is Hy vir hulle wat by Hom skuil. Moenie iets byvoeg by sy woorde nie, anders verklaar Hy jou skuldig en word jy as 'n leuenaar uitgekryt. Twee dinge vra ek van U – moet dit nie van my terughou voordat ek sterf nie: Valsheid en leuentaal, hou dit ver van my. Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, “Wie is die Here? ” nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie. Moenie 'n slaaf by sy baas beswadder nie, anders vervloek hy jou en moet jy boete doen. Daar is 'n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie, 'n geslag wat rein is in sy eie oë, maar van sy ontlasting nie skoon gewas is nie, 'n geslag – hoe hoogmoedig is sy oë en aanmatigend sy wimpers! Daar is 'n geslag waarvan die tande swaarde is, en die kake messe om mee te verteer – die magteloses van die aarde af, en die behoeftiges onder die mense uit. Die bloedsuier het twee dogters: Gee! Gee! Daar is drie dinge wat nie versadig raak nie, vier wat nie sê “Genoeg!” nie: die •doderyk, 'n geslote moederskoot, grond wat nie versadig raak van water nie, en vuur wat nie sê, “Genoeg!” nie. 'n Oog wat 'n vader bespot en gehoorsaamheid aan 'n moeder verag – die kraaie in die dal sal dit uitpik, en die arend se kuikens sal dit opvreet. Drie dinge is vir my te wonderlik, ja, vier kan ek nie begryp nie: die weg van die arend in die lug, die weg van 'n slang oor 'n rots, die weg van 'n skip op die oop see, en die weg van 'n man by 'n jongmeisie. Só is die weg van 'n vrou wat egbreuk pleeg: Sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het geen onreg gepleeg nie.” Onder drie dinge bewe die aarde, ja, onder vier kan hy dit nie uithou nie: onder 'n slaaf as hy koning word, 'n niksnuts as hy hom versadig eet aan brood, onder 'n getroude vrou wat nie-geliefd is, en 'n diensmeisie as sy haar eienares verdryf. Vier is die kleines van die aarde, maar hulle is buitengewoon slim: Die miere is 'n gemeenskap wat nie sterk is nie, en tog berei hulle vir hulle kos voor in die somer. Dassies is 'n gemeenskap wat nie magtig is nie, en tog maak hulle in die rotse hulle blyplek. Treksprinkane het geen koning nie, en tog trek hulle almal in groepe uit. 'n Geitjie kan jy met die hande vang, en tog is hy in koninklike paleise. Daar is drie met 'n statige stap, vier met 'n statige gang: 'n leeu, die held onder die diere wat vir niks terugdeins nie, 'n haan wat pronkerig stap, of 'n bokram, en 'n koning met sy leër by hom. As jy ydel was deur jouself te verhef, of as jy dit beplan het – plaas jou hand voor jou mond! Want die karring van room bring botter voort, die gekarring aan 'n neus bring bloed voort, en die gekarring aan toorn bring 'n regstryd voort. Die woorde van Lemuel, 'n koning. 'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het. Moenie, my seun, ja, moenie, seun van my skoot, ja, moenie, seun van my geloftes, moenie aan vroue jou lewenskrag bestee nie, of jou paaie daarop rig om konings uit te wis nie. Dit is vir konings nie gepas nie, Lemuel, dit is vir konings nie gepas om wyn te drink nie, vir hooggeplaastes om te wees waar daar sterk drank is nie. Anders drink hy, en vergeet wat as voorskrifte neergelê is, en skend hy die regte van al die magteloses. Gee sterk drank aan die een wat ten gronde gaan, en wyn aan mense met verbitterde siele. Laat hy drink en sy armoede vergeet, sy swaarkry nie meer onthou nie. Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. 'n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, van ver af bring sy haar brood in. Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy 'n wingerd. Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue. Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges. Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof. Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol. Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit. Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars. Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms. Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong. Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie. Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.” Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; 'n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word. Gee aan haar 'n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys! Die woorde van Prediker, seun van Dawid, koning in Jerusalem. Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos! Watter voordeel is daar vir 'n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son? Geslagte kom en geslagte gaan, en die aarde bestaan vir altyd. Die son kom op en die son gaan onder, en haas hom na sy plek waar hy opkom. Die wind waai na die suide en draai na die noorde. Dit bly draai en draai – op sy kringloop keer die wind telkens terug. Al die strome vloei na die see, maar die see word nie vol nie. Na die plek waarheen die strome vloei, daarheen vloei hulle altyd weer. Alles bly aan die worstel – 'n mens kan dit onder woorde nie bring nie; oë raak nie versadig van sien en ore raak nie vol van hoor nie. Wat ook al gebeur het, dit is wat gaan gebeur; en wat ook al gedoen is, dit is wat gedoen gaan word. Daar is niks nuuts onder die son nie. As daar iets is waarvan iemand sê, “Kyk hier, dit is nuut!” – dit het reeds gebeur in die tye wat voor ons daar was. Vroeëre gebeure word nie onthou nie, en ook nie die latere wat nog sal gebeur nie – daar is aan hulle net so min herinnering as aan dit wat sal gebeur teen die einde. Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. Ek het my daaraan toegewy om alles wat onder die hemel gedoen word, met wysheid te ondersoek en na te vors. Dit is 'n nuttelose taak wat God aan mense opgedra het om hulle mee te belas. Ek het gekyk na alles wat gedoen word onder die son: Kyk, dit alles is sinloos, 'n gejaag na wind. Wat krom is, kan nie reguit word nie; wat ontbreek, kan nie getel word nie. Ek het vir myself gesê: Wat my betref, kyk, ek het wysheid opgebou en vermeerder, meer as enigiemand wat voor my oor Jerusalem geheers het. My hart het baie insig gekry in wysheid en kennis. Toe het ek my daaraan toegewy om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Ek het besef dat selfs dit die najaag van wind is. Want met baie wysheid kom baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder lyding. Ek het in my hart gesê: Kom, ek laat jou plesier uittoets. Geniet wat goed is! Maar kyk, ook dit was sinloos. Om te lag, het ek gesê, is onsinnig, en oor plesier, wat lewer dit op? Ek het dit ernstig oorweeg om my liggaam met wyn op te beur, terwyl my hart my met wysheid lei, en om aan dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir mense, wat hulle onder die hemel moet doen gedurende hulle min lewensdae. Ek het groot ondernemings aangepak: Ek het vir my huise gebou; ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê, en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. Ek het vir my damme gemaak om 'n bos jong bome daaruit nat te lei. Ek het slawe en slavinne gekoop, en slawekinders wat in my huis gebore is, was ook deel van my besittings. Ek het meer beeste en kleinvee gehad as almal wat voor my in Jerusalem was. Ek het ook vir my silwer en goud, die privaatbesit van konings, en provinsies, bymekaargemaak. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf, en die genot van mensekinders: baie byvroue! So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou. Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie. Ja, my hart het vreugde geput uit al my inspanning. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar ek het nagedink oor al die werk wat my hande verrig het, en die inspanning waarmee ek my afgesloof het om dit tot stand te bring. En kyk, alles was sinloos en 'n gejaag na wind. Dit het geen voordeel ingehou onder die son nie. Ek het daaraan aandag geskenk om insig te kry in wysheid, in domheid en dwaasheid: Wat sal die een doen wat die koning opvolg? Dit wat reeds gedoen is! Ek het ingesien dat daar 'n voordeel is aan wysheid bo dwaasheid, soos die lig 'n voordeel is bo die duisternis. Die wyse het oë in sy kop, maar die dwaas verkeer in die duister. Ek het egter ook besef dat dieselfde lot beide tref. Toe het ek in my hart gesê: Die lot van die dwaas sal my ook tref. Waarom is ek dan buitengewoon wys? Ek het vir myself gesê dat ook dit sinloos is. Daar is immers geen blywende herinnering aan die wyse nie, net so min as aan die dwaas. In die dae wat kom sal alles lank reeds vergete wees. Ag, hoe sterf die wyse net soos die dwaas! Ek het 'n weersin in die lewe gekry, want wat onder die son gedoen word, het my gegrief; ja, dit alles is sinloos en 'n gejaag na wind. Ek het 'n weersin gekry in al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het – dat ek dit moet nalaat aan die een wat ná my kom. En wie weet of hy 'n wyse man sal wees of 'n dwaas? Hy gaan beheer hê oor alles waarvoor ek my ingespan het, waarvoor ek my afgesloof het en wat ek onder die son met wysheid uitgevoer het. Ook dit is sinloos. Ek het my hart aan vertwyfeling oorgegee, oor al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het; want iemand wat hom met wysheid, kennis en kundigheid afgesloof het, laat die vrug van sy arbeid as beloning na aan iemand wat hom nie daarvoor afgesloof het nie. Ook dit is sinloos en 'n groot euwel. Ja, wat kry 'n mens vir al sy inspanning en die strewe van sy hart waaroor hy besorg was onder die son? Want al sy dae is vol lyding, en sy taak is vir hom 'n verdriet – selfs snags kom sy hart nie tot rus nie. Ook dit is sinloos. Daar is niks beter vir die mens as dat hy eet en drink en sy keel laat geniet wat goed is vir sy inspanning nie. Ook dit het ek ingesien: Dit is uit die hand van God, want: “Wie kan eet en wie kan geniet sonder My?” Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde; maar vir die een wat verkeerd optree, gee Hy die taak om te versamel en bymekaar te maak – net om dit te oorhandig aan een wat aanvaarbaar is vir God. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind. Vir alles is daar 'n vasgestelde tyd; daar is 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om geboorte te gee en 'n tyd om te sterf; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is; 'n tyd om 'n lewe te neem en 'n tyd om te genees; 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou; 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag; 'n tyd om te rou en 'n tyd om te dans; 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak; 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing; 'n tyd om te soek en 'n tyd om te laat wegraak; 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi; 'n tyd om te skeur en 'n tyd om toe te werk; 'n tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat; 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat; 'n tyd van oorlog en 'n tyd van vrede. Watter voordeel het die een wat werk van dit waarmee hy hom afsloof? Ek het die taak gesien wat God aan mense gegee het om hulle mee te belas. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in hulle harte gegee, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil. Ek het besef dat daar tussen hulle niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe – ja, elke mens – dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning. Dit is 'n gawe van God. Ek het besef dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Daaraan kan niks toegevoeg word nie, en daarvan kan niks weggeneem word nie. God het dit gedoen sodat hulle ontsag vir Hom sal hê. Wat ook al gebeur het, was lankal daar; en wat gaan gebeur, het lankal gebeur. God haal weer na vore wat verby is. Verder het ek onder die son gesien: Die plek van die reg – daar was onreg; ja, die plek van geregtigheid – daar was onreg! Ek het in my hart gesê: God sal die regverdige en die goddelose oordeel oor elke optrede daar, want daar is 'n tyd vir elke saak. Ek het in my hart gesê: Wat mense betref – God toets hulle sodat hulle kan insien dat hulle self diere is. Want die lot van mense en die lot van diere – vir hulle is daar net een lot. Soos die een sterf, so sterf die ander – hulle het almal dieselfde lewensasem. 'n Voordeel van die mens bo die dier bestaan nie, want alles is sinloos. Alles gaan na een plek toe. Alles kom uit die stof en alles keer terug na die stof. Wie weet of dit die lewensasem van mense is wat na bo styg, en of dit die lewensasem van diere is wat na onder daal, na die grond? Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, want dit is sy beloning. Ja, wie kan hom daartoe bring om te sien wat ná hom sal gebeur? Ek het weer gekyk na al die onderdrukking wat gepleeg word onder die son. Kyk, daar is trane van onderdruktes, maar vir hulle is daar geen trooster nie. Die mag is in hulle onderdrukkers se hande – en vir hulle is daar geen trooster nie. Ek het die dooies wat lankal gesterf het, as gelukkig geprys bo dié wat nog leef; en beter daaraan toe as hulle almal is dié wat nog nie daar was nie, wat nog nie die slegte dade gesien het wat onder die son gepleeg word nie. Ek het gesien dat al die inspanning en al die kundigheid waarmee gewerk word, naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind. Die dwaas vou sy hande en vernietig homself. 'n Handpalm vol rus is beter as 'n dubbele hand vol inspanning, en 'n gejaag na wind. En weer het ek iets sinloos gesien onder die son: Daar is iemand alleen, sonder 'n tweede; hy het nie eers 'n seun of broer nie, maar daar is geen einde aan al sy inspanning nie; sy oë raak nie versadig van rykdom nie. Vir wie vermoei ek my en ontsê ek myself die goeie? Ook dit is sinloos en 'n slegte saak. Twee is beter as een, omdat daar vir hulle 'n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word? As iemand die een wil oorweldig – twee kan teen hom standhou. 'n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie. 'n Arm, maar wyse jong man is beter as 'n ou, maar dwase koning wat nie meer weet om op 'n waarskuwing ag te slaan nie, al het die jong man uit die tronk gekom om koning te word, selfs al is hy arm gebore in die koning se ryk. Ek het gesien dat almal wat leef, wat onder die son beweeg, die tweede jong man wat in sy plek gekom het, volg. Daar was nie 'n einde aan al die mense wat elke vorige koning ondersteun het nie; tog sal die mense in die toekoms nie oor die jong man verheug wees nie. Ja, ook dit is sinloos en die najaag van wind. Trap versigtig wanneer jy na die huis van God gaan. Gaan nader om te luister eerder as om 'n offer te bring soos dwase, want hulle weet nie dat hulle verkeerd optree nie. Moenie gou wees met jou mond en laat jou hart nie haastig wees om 'n woord voor God te uiter nie. Want God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees. Ja, 'n droom kom deur baie sorge en 'n dwase gepraat deur baie woorde. Wanneer jy 'n gelofte teenoor God aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want Hy hou nie van dwase nie. Wat jy ook al beloof – betaal dit! Dit is beter dat jy nie beloof nie as dat jy beloof en nie betaal nie. Moenie jou mond toelaat om jou liggaam te laat sondig nie. Moenie voor die boodskapper van God sê dat dit 'n onopsetlike fout was nie. Waarom moet God vertoornd word oor jou woorde en jou handewerk vernietig? Want waar baie drome en onsinnighede is, is daar meer woorde. Ja, vrees God! As jy die afpersing van armes en die verdraaiing van reg en geregtigheid sien in 'n provinsie, moet jy jou nie oor die saak verbaas nie, want hooggeplaastes hou 'n oog oor hooggeplaastes, en hoëres weer oor hulle. Maar die voordeel vir 'n land, te midde van dit alles, is 'n koning wat sorg dat lande bewerk word. Wie geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie aan rykdom geheg is, van inkomste nie. Ook dit is sinloos. Wanneer iemand se voorspoed toeneem, word dié wat dit verbruik meer. Wat is die wins vir die besitter daarvan behalwe dat sy oë dit aanskou? Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet; maar die oormaat van die ryke gun hom geen rus nie, sodat hy nie kan slaap nie. Daar is 'n siek euwel wat ek gesien het onder die son: rykdom wat deur die besitter bewaar is tot sy eie nadeel. Hierdie rykdom het verlore gegaan deur swak besigheid. Hy het 'n seun verwek, maar dié sit sonder iets in sy hand. Soos wat hy naak uit die skoot van sy moeder gekom het, sal hy weer heengaan soos hy gekom het. Hy sal niks saamneem vir sy inspanning nie, niks wat hy met sy hand kan dra nie. Ja, dit is ook 'n siek euwel: Net soos hy gekom het, so gaan hy heen. Watter voordeel is daar vir hom dat hy hom vir wind afsloof? Selfs al eet hy sy lewe lank in die donker; hy vermeerder net verdriet, sy siekte en die grimmigheid. Kyk, wat ek gesien het, wat goed en mooi is, is om te eet en te drink en te geniet wat goed is by al die inspanning waarmee iemand hom afsloof onder die son gedurende die min lewensdae wat God vir hom gee, want dit is sy beloning; boonop, dit geld vir elke mens aan wie God rykdom en besittings gee en vir wie Hy die geleentheid gee om daarvan te geniet, om dit as sy beloning te ontvang en vrolik te wees by sy inspanning. Dit is 'n gawe van God. Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie: God laat hom besig bly met wat sy hart verbly. Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom: 'n man aan wie God rykdom, besittings en eer gee sodat hy niks kortkom van alles wat hy begeer nie, maar God gee hom nie die geleentheid om daarvan te geniet nie, omdat 'n vreemde persoon dit geniet. Dit is sinloos en 'n bitter lyding. As iemand honderd kinders verwek en baie jare leef – hoe baie sy lewensjare ook al is – maar sy begeerte na die goeie nie versadig word nie, en daar ook nie 'n begrafnis vir hom is nie, dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy! Want sonder enige sin kom dit en in duisternis gaan dit; en met duisternis word die naam daarvan bedek; boonop het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as daardie man, selfs al leef hy ook twee maal duisend jaar, maar geniet nie wat goed is nie. Gaan alles nie maar na een plek toe nie? Al die inspanning van 'n mens is maar net vir sy mond, maar tog kry sy keel nie genoeg nie. Ja, watter voordeel is daar vir die wyse bo die dwaas? Watter voordeel is daar vir die magtelose wanneer hy weet hoe om hom te gedra teenoor die wêreld? Om met die oë te geniet, is beter as onvervulde begeertes. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind. Wat bestaan, is lankal reeds benoem. Dit is bekend dat hy “mens” is, en hy kan nie 'n regstryd begin met Een wat magtiger as hy is nie. Wanneer daar meer woorde is, word die sinloosheid meer. Watter voordeel is daar vir die mens? Ja, wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende sy min, sinlose lewensdae wat hy deurbring asof dit 'n skaduwee is? Wie is dit wat die mens kan inlig oor wat ná hom sal gebeur onder die son? 'n Goeie naam is beter as goeie reukolie, en die sterfdag as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n huis waar gerou word, as om te gaan na 'n huis waar fees gevier word; want in 'n huis waar gerou word, eindig alle mense, en die lewende moet dit ter harte neem. Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart. Die hart van wyses is in 'n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in 'n huis waar plesier is. Dit is beter om te luister na die vermaning van 'n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Ook dit is sinloos: dat afpersing 'n wyse dwaas maak, en 'n geskenk 'n hart vernietig. Die einde van 'n saak is beter as die begin daarvan; iemand wat lankmoedig is, is beter as iemand wat hoogmoedig is. Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase. Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie. Wysheid is goed saam met 'n erfporsie en is 'n voordeel vir dié wat die son sien; want die wysheid bied beskutting. Geld bied beskutting, maar die voordeel daarvan om die wysheid te ken, is: Die wysheid hou dié wat haar besit, lewend. Kyk na die werk van God: Wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie. Dit alles het ek gesien in my sinlose lewensdae: Daar is 'n regverdige wat deur sy regverdigheid omkom; en daar is 'n goddelose wat deur sy goddeloosheid lank lewe. Moenie oordrewe regverdig wees of jouself besonder slim hou nie. Waarom moet jy jouself vernietig? Moenie oordrewe goddeloos wees nie, en moenie 'n dwaas wees nie. Waarom moet jy sterf voor jou tyd? Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook nie jou hand aan die ander onttrek nie; want wie vir God eerbied het, ontkom aan dit alles. Die wysheid gee aan die wyse meer mag as tien heersers wat in die stad is; want daar is geen mens op aarde wat regverdig is, wat aanhou goed doen en nie sondig nie. Verder, moenie aandag gee aan alles wat mense sê nie, sodat jy nie hoor dat jou slaaf jou vervloek nie. Want jou hart weet ook van die vele kere toe ook jy ander vervloek het. Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel. Ek het gesê, ek wil wys wees, maar dit het buite my bereik gebly. Wat gebeur, is ver en diep, baie diep – wie kan dit peil? Ek het my hart daaraan oorgegee om te ken en na te vors, om na wysheid en verklaring te soek, om die kwaad van onkunde, en die dwaasheid as domheid, te leer ken. En dan vind ek gewoonlik: Bitterder as die dood is die vrou wat vangnette is; wie se hart sleepnette, wie se hande boeie is. Hy wat goed is voor God, sal aan haar ontkom; maar hy wat verkeerd doen, word deur haar gevang. Kyk, dit is die wysheid wat ek gevind het, sê die prediker, by die een na die ander op soek na verklaring. Wat ek self bly soek het, maar nie gevind het nie, is: Een mens uit duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek tussen hulle almal nie gevind nie. Kyk, al wat ek kon vasstel, is dat God die mensdom reg geskape het, maar hulle is op soek na allerlei slim verklarings. Wie is soos die wyse? En wie ken die betekenis van 'n saak? Die wysheid van 'n mens laat sy gesig straal en sy strak gelaat word verander. Kom die bevel van die koning na; maar as dit oor die eed voor God gaan, moenie verskrik wees nie; gaan van die koning af weg; moet jou nie met 'n slegte saak inlaat nie; hy doen immers alles wat hom behaag, want 'n koning se woord is magtig. Wie kan vir hom sê: “Wat doen u?” “Wie 'n gebod nakom, sal nie kwaad ervaar nie; en die hart van 'n wyse ken tyd en beslissing.” Ja, vir elke saak is daar 'n tyd en 'n beslissing; maar die teenspoed van die mens rus swaar op hom, want hy weet nie wat gaan gebeur nie. Ja, hoe dit gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? Geen mens het beheer oor die lewensasem, om die lewensasem terug te hou nie. Niemand het mag oor die sterfdag nie, daar is geen vrystelling in die oorlog nie, en goddeloosheid kan sy besitters nie laat vrykom nie. Dit alles het ek gesien terwyl ek aandag gegee het aan elke werk wat onder die son gedoen word – in die tyd wanneer een mens beheer uitoefen oor 'n ander, tot sy nadeel. Daarna het ek gesien: Goddeloses wat gewoond was om in en uit die heiligdom te gaan, word begrawe. Maar in die stad raak dié vergete wat reg opgetree het. Ook dit is sinloos. Omdat 'n vonnis oor 'n bose daad nie gou voltrek word nie, daarom is mense se harte in hulle vol daarvan om kwaad te doen – omdat 'n sondaar honderd keer kwaad kan doen, en lank lewe. Ja, ek weet ook: Dit sal goed gaan met hulle wat vir God ontsag het, omdat hulle vir Hom ontsag het; en dit sal nie goed gaan met die goddelose nie, en hy sal nie die dae verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy geen ontsag het vir God se teenwoordigheid nie. Daar is iets sinloos wat op die aarde plaasvind: Daar is regverdiges met wie dit gaan volgens die optrede van die goddeloses; en daar is goddeloses met wie dit gaan volgens die optrede van die regverdiges. Ek sê dat ook dit sinloos is. Daarom prys ek die plesier, want daar is niks beter vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en vrolik te wees. Dit moet hom vergesel by sy inspanning gedurende sy lewensdae wat God hom gee onder die son. Toe ek my daaraan toegewy het om wysheid te ken, en om die taak te beskou wat op die aarde verrig word – terwyl 'n mens selfs dag en nag met sy oë geen slaap sien nie – het ek al die werk van God gesien. Die mens is nie in staat om die werk wat onder die son gedoen word te ontrafel nie. Hoe die mens hom ook al vermoei met soek, hy sal dit nie ontrafel nie. Selfs al gee die wyse voor om dit te weet, hy is nie in staat om dit te ontrafel nie. Ja, aan al hierdie dinge het ek aandag gegee, om al hierdie dinge op te helder: Die regverdiges en die wyses en hulle dade is in God se hand, of dit nou liefde is of haat. Mense weet nie wat alles vir hulle voorlê nie. Alles is dieselfde vir almal: Daar wag een lot vir die regverdige en die goddelose; vir die goeie, die reine en die •onreine; vir die een wat offer en vir hom wat nie offer nie. Dit gaan met die sondaar soos met die goeie, met die een wat 'n eed aflê, soos met hom wat bang is om 'n eed af te lê. Dit is die slegte by alles wat onder die son gebeur: dat daar een lot is vir almal; ook dat die hart van mense vol boosheid is, en dat domheid in hulle harte is gedurende hulle lewe; en daarna – na die dooies! Maar vir wie nog by al die lewendes is, is daar hoop. Ja, 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Die lewendes weet immers dat hulle sal sterf, maar die dooies weet niks nie; daar is vir hulle geen verdere beloning nie. Ja, die herinnering aan hulle het vervaag; hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer het lankal verdwyn; en vir ewig het hulle geen deel meer aan alles wat onder die son gebeur nie. Gaan eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal jou dade goedgekeur. Laat jou klere altyd wit wees, laat jou kop nie sonder reukolie wees nie. Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet, al jou sinlose lewensdae wat Hy vir jou gegee het onder die son, al jou sinlose dae; want dit is jou beloning in die lewe by jou inspanning waarmee jy jou afsloof onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met oorgawe; want daar is geen werk of verklaring, of kennis of wysheid in die •doderyk waarheen jy op pad is nie. Weer het ek onder die son gesien: Die wedloop is nie vir die vinniges en die oorlog is nie vir die krygshelde nie; brood is ook nie vir die wyses, rykdom is ook nie vir die verstandiges, en guns is ook nie vir die kenners nie; want tyd en toeval is bepalend vir hulle almal. Ja, die mens ken ook nie sy tyd nie. Soos visse wat gevang word in 'n verraderlike net, en soos voëls wat gevang word in 'n wip, so is dit met hulle: In 'n tyd van onheil raak mense verstrik, soos dit hulle skielik oorval. Ook dit beskou ek as wysheid onder die son, en dit is vir my iets groots: Daar was 'n klein stadjie met min mense daarin. 'n Groot koning het daarheen opgetrek, dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. 'n Arm, wyse man het hom in die stad bevind. Dié man het die stad deur sy wysheid gered, tog het niemand daardie arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as krag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyses, kalm aangehoor, is beter as die geskree van 'n heerser tussen dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een persoon wat verkeerd optree, maak baie wat goed is, tot niet. 'n Dooie vlieg laat die olie van 'n salfmenger stink en gis; 'n bietjie dwaasheid het groter gevolge as wysheid, as eer. Die hart van 'n wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas na links. Selfs op pad, soos 'n dwaas vorder, toon hy 'n gebrek aan insig; hy gee aan elkeen te kenne dat hy dwaas is. As die heerser sy humeur teenoor jou verloor, moenie jou pos verlaat nie, want kalmte maak ernstige oortredings onskadelik. Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, 'n mistasting wat by die heerser ontstaan: Die dwaas word in vele hoë posisies geplaas, terwyl rykes in lae posisies sit. Ek het slawe op perde gesien, en •hoë amptenare wat op die grond loop soos slawe. Wie 'n put grawe, kan self daarin val; en wie 'n muur afbreek – 'n slang kan hom pik. Wie klippe uitbreek, kan homself daarmee beseer; wie hout kloof, kan daardeur in gevaar kom. As die byl stomp word, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy meer kragte inspan. 'n Voordeel is om wysheid in te span. As die slang pik voor hy besweer is, is daar geen voordeel vir die besweerder nie. Woorde uit die mond van 'n wyse bring guns, maar die lippe van 'n dwaas oorweldig hom. Die begin van die woorde uit sy mond is dwaasheid, en die einde van sy gepraat is rampspoedige domheid. En die dwaas het soveel te sê! Die mens weet nie wat sal gebeur nie; wat ná hom gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? Die inspanning van 'n dwaas maak hom moeg, hy wat nie weet hoe om die stad te bereik nie. Wee jou, land, as jou koning nog 'n kind is, en jou hoë amptenare soggens feesvier. Gelukkig is jy, land, as jou koning van edeles afstam, en jou hoë amptenare op die regte tyd feesvier, met selfbeheersing en nie met 'n gedrink nie. Opperste luiheid laat die dakbalke uitsak, en slap hande laat die huis lek. Feeste word gehou vir plesier en wyn vrolik die lewe op – geld maak dit alles moontlik. Selfs in jou gedagte moet jy die koning nie vervloek nie, en selfs in jou slaapkamer moet jy 'n ryke nie vervloek nie. Want die voëls van die hemel kan die geluid wegdra, 'n gevleuelde kan dalk 'n woord oordra. Stuur jou graan oor die water, want ná baie dae kan jy dit terugkry. Gee 'n deel aan sewe, selfs aan agt, want jy weet nie watter ramp op die aarde sal gebeur nie. As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as 'n boom val, na die suide of na die noorde – waar die boom moet val, daar sal dit val. Wie die wind dophou, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie. Soos wat jy nie weet watter weg die gees volg in die gebeente binne die buik van 'n swanger vrou nie, net so ken jy nie die werk van God wat alles doen nie. Saai in die môre jou saad, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nie watter een gaan slaag nie, hierdie of daardie, en of beide goed sal wees nie. Soet is die lig; dit is goed vir die oë om die son te sien. Ja, as die mens baie jare leef, moet hy hom in hulle almal verheug; maar hy moet onthou dat die donker dae baie gaan wees. Alles wat kom, is sinloos. Verheug jou, jong man, in jou jeug; jou hart moet jou vrolik maak in jou jong dae. Volg die paaie van jou hart en waarheen jou oë jou lei; maar weet: Oor al hierdie dinge sal God jou voor die gereg bring. Weer kwelling uit jou hart en hou lyding weg van jou liggaam, want die jeug en die bloei van die lewe is sinloos. Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voordat die dae van teenspoed kom, en jare aanbreek waarvan jy sal sê, “Vir my is daar geen vreugde in nie”; voordat die son en die lig donker word, die maan en die sterre; en die wolke terugkeer ná die reën; die dag wanneer die wagte van die huis bewe, die sterk manne krom word, die vroue wat maal, ophou werk omdat hulle te min geword het, dié wat deur die vensters kyk, donker word, en die deure na die straat gesluit word; wanneer die geluid van die meul sag word; wanneer sy stem klink soos die klank van 'n voël, maar al die tone van die lied dof is; wanneer daar selfs vir 'n hoogte gevrees word en daar verskrikking op die pad is; terwyl amandelbome bloei, koringkrieke hulleself voortsleep en kappertjies oopbreek, wanneer die mens op pad is na sy ewige huis, en die rouklaers in die straat rondgaan; voordat die silwerkoord verwyder word, die goue bak stukkend val, die kruik langs die waterbron gebreek word, die skepwiel stukkend val in die put, die stof na die aarde terugkeer soos dit was, en die lewensasem na God terugkeer wat dit gegee het. Sinloos, volslae sinloos, sê die prediker, alles is sinloos! Nie net was Prediker wys nie, hy het ook nog kennis aan die volk oorgedra. Hy het oorweeg en nagevors; hy het baie wysheidspreuke georden. Prediker het daarna gestreef om gepaste woorde te vind, wat eerlik neergeskryf is – waar woorde. Die woorde van wyses is soos skerp stokke; soos spykers wat ingeslaan is, is die hoofgedagtes van 'n versameling. Hulle is deur een Herder gegee. Bo en behalwe alles, nog dit: My seun, wees gewaarsku: Aan die skryf van baie •boekrolle kom daar geen einde nie, en baie studie is uitputtend vir die liggaam. Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad. Die lied van alle liedere. Van Salomo. Laat hy my met die soene van sy mond soen; ja, jou liefkosings is beter as wyn. Die geur van jou reukolie is heerlik, reukolie wat uitgegiet word, is jou naam – daarom raak die meisies verlief op jou! Neem my saam met jou! Kom ons hardloop! Die koning het my na sy kamer geneem. Ons wil vreugde put uit jou, ons verheug oor jou! Ons wil jou liefkosings meer aanprys as wyn. Hulle is met reg verlief op jou! Ek is donker, meisies van Jerusalem, en pragtig – soos die tente van Kedar, soos Salomo se tentdoeke. Moenie na my staar omdat ek donker is, omdat die son my bruin gebrand het nie. Die seuns van my ma was kwaad vir my: Hulle het my die wingerde laat oppas; my eie wingerd kon ek nie oppas nie. Laat weet my tog, geliefde van my hart, waar laat jy jou kudde wei, waar laat jy hulle in die middag rus? Waarom moet ek gesluierd gaan tussen jou vriende se kuddes? Weet jy dit nie, mooiste onder die vroue? Volg die spore van die kleinvee en laat jou lammers langs die herders se tente wei. Soos 'n merrie by die farao se strydwaens is jy vir my, my liefling. Hoe bekoorlik is jou wange met die stringe krale, jou nek met die halssnoere! Kom ons maak vir jou goue kettinkies, gestip met silwer. Terwyl die koning by sy feestafel is, versprei my nardus sy geur. 'n Sakkie mirre wat tussen my borste rus, is my liefste vir my. 'n Bossie hennabloeisels in die wingerde van En-Gedi, is my liefste vir my. O, hoe mooi is jy, my liefling, hoe mooi is jy! Jou oë is duiwe. O, hoe mooi is jy, my liefste, en aantreklik! Ons bed is groen loof. Die balke van ons huis is seders, ons dakbalke sipresse. Ek is 'n tulp van die Saron, 'n narsing uit die valleie. Soos 'n narsing tussen dorings, so is my liefling onder die meisies. Soos 'n appelboom tussen die bome van die bos, so is my liefste onder die jong mans. Ek sit graag in sy skaduwee, sy vrugte soet op my tong. Hy neem my na 'n wynhuis onder die vaandel van liefde. Verfris my met rosyntjies, verkwik my met appels, want ek is siek van liefde. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Luister! My liefste! Kyk! Daar kom hy, al bokspringend oor die berge, al huppelend oor die heuwels! My liefste is soos 'n ribbok, soos 'n jong rooitakbok. Kyk! Hy staan agter ons huismuur, hy kyk by die vensters in, hy loer deur die latwerk. My liefste antwoord my, hy sê vir my: “Staan op, my liefling, my mooiste, en kom! Want kyk, die winter het verbygegaan, die reën is verby, dit het opgeklaar. Die veld staan in die blom. Die tyd om te sing het aangebreek, die gekoer van die tortelduiwe klink op in ons land. Die vyeboom laat sy groen vye uitswel, die wingerd bot en versprei sy geur. Staan op, my liefling, my mooiste, en kom! My duif in die rotsskeure, in die skuilplekke teen die bergkrans – laat my jou gesig sien, laat my jou stem hoor, want jou stem is soet en jou gesig is pragtig.” Vang vir ons die jakkalse – die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat bot. My liefste is myne en ek is syne, hy wat tussen die narsings wei. Totdat die dag begin asemhaal en die skaduwees vlug: Draai om, my liefste, wees soos 'n ribbok, soos 'n jong rooitakbok op die tweelingheuwels. Die hele nag op my bed hunker ek na die geliefde van my hart. Ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie. Laat ek nou opstaan en die stad deurkruis, op die strate en pleine na die liefde van my hart soek. Ek het hom gesoek, maar hom nie gevind nie. Die wagte, op hulle rondtes deur die stad, het my gevind. “Die geliefde van my hart, het julle hom gesien?” Pas nadat ek by hulle verby is, vind ek die geliefde van my hart! Ek gryp hom vas en laat hom nie weer gaan nie, tot ek hom na my moeder se huis gebring het, na die kamer van haar wat met my swanger was. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Wat kom daar aan uit die woestyn soos suile rook, omhul van mirre en wierook, van al die beste speserye van die handelaar? Kyk, dit is Salomo se drastoel, omring deur sestig dapper manne, van die dapperstes in Israel, almal bedrewe met die swaard, ervare krygers, elkeen met sy swaard op sy heup, bedag op nagtelike gevare. Koning Salomo het vir hom 'n drastoel gemaak van hout uit die Libanon. Die style het hy van silwer gemaak, die dak van goud, die sitplek van purperstof, die binnekant is uitgevoer met leer. Meisies van Jerusalem, kom uit! Meisies van Sion, kom kyk na koning Salomo, na die kroon waarmee sy moeder hom gekroon het, op sy troudag, op die dag toe sy hart oorstelp van vreugde was. O, hoe mooi is jy, my liefling, hoe mooi is jy! Jou oë is duiwe agter jou sluier, jou hare 'n trop bokke wat teen die berge van Gilead afstroom. Jou tande is soos 'n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek af opkom, almal tweelinge, nie een van hulle op sy eie nie. Soos karmosynrooi lint is jou lippe, jou mond is pragtig. Agter jou sluier is jou slape soos 'n oopgebreekte granaat. Jou nek is soos die Dawidstoring wat in kliplae gebou is, waaraan 'n duisend skilde hang, al die rondeskilde van die krygshelde. Jou borste is soos twee jong bokkies, die tweeling van 'n ribbokooi, wat tussen narsings wei. Totdat die dag begin asemhaal en die skaduwees vlug, gaan ek na die mirreberg, na die wierookheuwel. Alles aan jou is mooi, my liefling, jy is heeltemal vlekkeloos. Kom saam met my van die Libanon af, my bruid, saam met my van die Libanon af. Daal af van die kruin van Amana, van die kruin van Senir, van Hermon, van die lêplekke van die leeus, van die berge waar die luiperds hou. Jy het my hart gesteel, my suster, my bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een kettinkie van jou halssnoer. Hoe verruklik is jou liefkosings, my suster, my bruid. Hoeveel beter is jou liefkosings as wyn, die geur van jou reukolie as al die speserye. Jou lippe drup heuning, my bruid, heuning en melk is onder jou tong, jou klere dra die geur van die Libanon. 'n Toegesluite tuin is my suster, my bruid, 'n toegesluite put, 'n verseëlde fontein. Jou bloeisels is 'n boord granate met heerlike vrugte, henna met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel; met elke soort wierookplant, mirre en adelhout; met al die kosbaarste speserye. Jy is 'n fontein vir tuine, 'n put met vars water wat van die Libanon af vloei. Steek op, noordewind, kom, suidewind, waai deur my tuin, laat die geur van sy speserye versprei. Laat my liefste na sy tuin kom en sy heerlike vrugte eet. Ek kom na my tuin, my suster, my bruid. Ek pluk my mirre met my speserye, ek eet my heuningkoek met my heuning, ek drink my wyn met my melk. Eet, vriende! Drink, en word van liefde dronk! Ek was aan die slaap, maar my hart was wakker. Hoor daar! My liefste klop! “Maak vir my oop, my suster, my liefling, my duif, my volmaakte; my kop is nat van dou, my lokke deurdrenk van die nag se dou.” Ek het my oorkleed al uitgetrek, moet ek dit weer aantrek? Ek het my voete al gewas, moet ek dit weer laat vuil word? My liefste het sy hand deur die opening gesteek en my hart het onstuimig geklop oor hom. Ek het opgestaan om vir my liefste oop te maak. My hande het gedrup van mirre, my vingers van vloeiende mirre, op die handvatsels van die grendel. Ek het oopgemaak vir my liefste, maar my liefste het omgedraai en weggegaan. Toe hy wegdraai, het dit geduisel in my. Ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie. Die wagte, op hulle rondtes deur die stad, het my gevind. Hulle het my geslaan, hulle het my verwond, hulle het my sjaal afgeruk, die wagte by die stadsmure. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle: As julle my liefste vind, wat moet julle vir hom sê? Dat ek siek is van liefde. Wat maak jou liefste beter as ander, mooiste onder die vroue, wat maak jou liefste beter as ander, dat jy ons so besweer? My liefste is stralend en bloesend; hy troon bo tienduisende uit. Sy kop is suiwer fyngoud, sy hare raafswart dadeltrosse. Sy oë is soos duiwe langs waterstrome, wat bad in melk, wat sit langs 'n vol poel. Sy wange is soos beddings balsemkruid wat geurige kruie laat uitspruit. Sy lippe is narsings wat drup van vloeiende mirre. Sy voorarms is ronde stawe goud met •chrisoliet versier. Sy buik is gepoleerde ivoor, oortrek met •lasuursteen. Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyngoud. Sy gestalte is soos die Libanon, uitsonderlik soos die seders. Sy mond is pure soetigheid, hy is die begeerlikheid self. So lyk my liefste, so lyk my vriend, meisies van Jerusalem! Waarheen het jou liefste gegaan, mooiste onder die vroue? Waarheen het jou liefste weggedraai, dat ons hom saam met jou kan soek? My liefste het na sy tuin gegaan, af na die beddings balsemkruid om in die tuine te wei en om narsings te pluk. Ek behoort aan my liefste en my liefste behoort aan my, hy wat tussen die narsings wei. Jy is mooi, my liefling, soos Tirsa, pragtig soos Jerusalem, indrukwekkend soos vaandeldraers. Wend jou oë af van my, want hulle ontsenu my. Jou hare is soos 'n trop bokke wat teen Gilead afstroom. Jou tande is soos 'n kudde ooie wat van die drinkplek af opkom, almal tweelinge, nie een van hulle op sy eie nie. Agter jou sluier is jou slape soos 'n oopgebreekte granaat. Al is daar sestig koninginne, tagtig byvroue, en ontelbare jong vroue, my duif, my volmaakte, is enig. Enig is sy vir haar ma, die gunsteling van die een wat haar in die wêreld gebring het. Die meisies sien haar raak en noem haar gelukkig; die koninginne en byvroue sien haar raak en prys haar. Wie is dit wat daar verskyn soos die dagbreek, mooi soos die volmaan, helder soos die son, indrukwekkend soos vaandeldraers? Na die neuteboord het ek afgegaan om te kyk na die jong plante by die spruit, om te kyk of die wingerde rank, die granaatbome bloei. Sonder dat ek dit besef, het my begeerte my verplaas na die strydwaens van die vooraanstaandes van my volk. Draai om, meisie uit Sulem, draai om! Draai om! Draai om, sodat ons na jou kan kyk! Waarom staar julle na die meisie uit Sulem asof na die kringdans van Mahanaim? Hoe mooi is jou voete in jou sandale, dogter van 'n edele. Die kurwes van jou heupe is soos ornamente – die werk van kunstenaarshande! Jou naeltjie is 'n ronde kelk – mag dit vol kruiewyn bly. Jou maag is 'n hopie koring, met narsings omsoom. Jou borste is soos twee jong bokkies, die tweeling van 'n ribbokooi. Jou nek is soos 'n toring van ivoor, jou oë soos die poele by Gesbon, by die poort van Bat-Rabbim. Jou neus is soos die toring van Libanon wat uitkyk oor Damaskus. Jou kop is soos Karmel, jou los hare soos purperstof – 'n koning raak verstrengel in die lokke. Hoe mooi, hoe lieflik is jy, liefling, hoe verruklik! Jou gestalte is soos 'n palmboom, jou borste soos druiwetrosse. Ek het gedink: Ek wil teen die palmboom opklim en sy dadelpluime pluk. Mag jou borste soos trosse druiwe wees, die geur van jou asem soos appels, en jou mond soos die beste wyn...... wat glad vir my liefste vloei, liggies oor die lippe van slapendes gly. Ek behoort aan my liefste en sy begeerte is na my. Kom, my liefste! Kom ons gaan uit na die veld, laat ons tussen die hennablomme oornag. Laat ons vroeg na die wingerde gaan, gaan kyk of die wingerd bot, of die botsels al oop is, of die granaatbome in bloei staan. Daar sal ek my liefde aan jou gee. Die alruin versprei sy geur en voor ons deur is allerlei heerlike vrugte van hierdie en die vorige seisoen, wat ek vir jou bewaar het, my liefste. Was jy maar vir my soos 'n broertjie wat aan my ma se borste drink. As ek jou buite teëkom en soen, sou niemand my kwalik neem nie. Ek sou jou lei, jou na my ma se huis neem, sy wat my geleer het. Ek sou vir jou kruiewyn gee om te drink, die sap van my granate. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Wie is dit wat daar uit die woestyn kom aan die arm van haar liefste? Onder die appelboom laat ek jou ontwaak: Daar het jou ma met jou swanger geraak, daar het sy wat swanger was jou in die wêreld gebring. Dra my soos 'n rolseël teen jou hart, soos 'n rolseël aan jou arm; want liefde is kragtig soos die dood, hartstog meedoënloos soos die •doderyk – die liefdesgloed is 'n vlammende vuur, 'n verterende vlam. Baie water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie wegspoel nie. As iemand alles in sy huis aanbied in ruil vir liefde, sal hy diep verag word. Ons het 'n jong sustertjie, nog sonder borste. Wat sal ons vir ons sustertjie doen die dag wanneer om haar hand gevra word? As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerverskansing op haar bou; en as sy 'n deur is, sal ons haar met sederplanke afsper. Ek is 'n muur, en my borste soos torings; toe word ek vir hom soos 'n stad wat vrede aanbied. Salomo het 'n wingerd besit by Baäl-Hamon. Hy het opsigters aangestel wat duisend silwerstukke vir die vruggebruik moes betaal. My eie wingerd is voor my. Die duisend silwerstukke is vir jou, Salomo, en tweehonderd vir hulle wat die vrugte oppas. O, jy wat in die tuine vertoef, met vriende wat na jou stem luister – laat mý dit hoor! Glip weg, my liefste! Wees soos 'n ribbok of 'n jong rooitakbok op die heuwels vol speserye. Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda. Luister, hemel, en gee aandag, aarde, want die Here praat: “Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in verset gekom. 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” Wee 'n sondige nasie, 'n volk swaar belaai met sondeskuld, 'n geslag kwaaddoeners, kinders wat hulle wangedra! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer. Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid? Elke kop is siek, elke hart is swak. Van die voetsool tot die kop is daar nie 'n gesonde plek nie, net hale en kneusplekke en oop wonde. Dit is nie gedreineer nie, of verbind of versorg met olie nie. Julle land is 'n woesteny; julle stede is met vuur verbrand. Julle landerye – voor julle oë verteer vreemdes dit; ja, dit is 'n woesteny, asof vreemdes dit verwoes het. Die dogter van Sion het oorgebly soos 'n takskerm in 'n wingerd, soos 'n oornagskerm in 'n lappie komkommers, soos 'n beleërde stad. As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n klein oorblyfsel agtergelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het. Luister na die woord van die Here, •gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra! “Wat baat julle magdom slagoffers My?” vra die Here. “Ek het genoeg gehad van die •brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie. Wanneer julle kom om voor My te verskyn – wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap? Hou op om waardelose •graanoffers aan te dra! Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie. Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My 'n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra. As julle julle hande uitstrek, sluit Ek my oë vir julle. Selfs as julle baie bid, luister Ek nie. Julle hande is vol bloed. Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen! Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake! “Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word. As julle gewillig is en luister – die goeie van die land sal julle geniet. Maar as julle weier en opstandig is – deur die swaard sal julle verteer word.” Ja, die mond van die Here het gespreek. Helaas, sy het 'n prostituut geword, die getroue stad! Sy was gevul met die reg; geregtigheid het in haar oornag, maar nou net moordenaars. Jou silwer het metaalskuim geword, jou koringbier is met water verdun. Jou •hoë amptenare is koppig en span met diewe saam. Hulle almal is lief vir omkoopgeld en jaag belonings na. Vaderloses se reg handhaaf hulle nie, en weduwees se regsake dien nie voor hulle nie. Daarom is dit die uitspraak van die Here, die Heer, Heerser oor alle magte, die Magtige van Israel: “Wee hulle! Ek gaan voldoening ervaar oor my teenstanders; Ek gaan My wreek op my vyande. Ek sal my hand teen jou draai, jou metaalskuim uitsmelt soos met potas, al jou onsuiwerhede verwyder. Ek sal jou regters tot inkeer bring soos dit voorheen was, en ook jou raadgewers soos dit aan die begin was. Daarna sal jy genoem word: Stad van Geregtigheid, Getroue Vesting.” Sion sal net deur reg vrygekoop word, en dié van haar wat terugkeer, deur geregtigheid. Sowel oortreders as sondaars sal verpletter word; wie die Here verlaat, sal omkom. Ja, hulle sal beskaamd staan oor die terebintbome wat julle so begeer. Julle sal verleë wees oor die tuine waaroor julle so gaande is. Ja, julle sal wees soos 'n terebintboom waarvan die blare verwelk, soos 'n tuin wat geen water kry nie. Die sterke sal vlasvesel word, en sy dade 'n vonk. Beide sal saam verbrand, terwyl niemand dit kan blus nie. Die woord wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is in verband met Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die berg van die Here se huis stewig staan as die hoogste van die berge; hy sal bo die heuwels uittroon. Al die nasies sal daarheen stroom; baie volke sal gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy paaie kan leer, en ons sy weë kan volg.” Ja, uit Sion sal daar onderrig kom, en die woord van die Here uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen die nasies, die reg handhaaf vir talryke volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie; hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Huis van Jakob, kom, laat ons leef in die lig van die Here. Ja, U het u volk, die huis van Jakob, verlaat omdat daar soveel voorspellers uit die Ooste by hulle is, en soveel mense wat voortekens lees soos by die Filistyne; en van die nageslag van vreemdes het hulle 'n oorvloed. Hulle land is vol silwer en goud – daar is geen einde aan hulle skatte nie. Hulle land is vol perde – daar is geen einde aan hulle strydwaens nie. Hulle land is vol nuttelose afgode; voor hulle handewerk buig hulle in aanbidding, voor dit wat hulle vingers gemaak het. Mense het neergebuig, manne het hulleself verneder. U moet hulle nie vergewe nie! Gaan skuil tussen die rotse, kruip weg in die grond uit vrees vir die Here, vanweë sy verhewe glansrykheid! Die trotse oë van mense word verneder, die hoogmoed van manne word neergeslaan. Die Here alleen sal verhewe wees op daardie dag. Die Here, Heerser oor alle magte, hou immers 'n dag gereed teen alles wat verwaand en hoog is, teen alles wat verhewe is – dit sal neergeslaan word – teen al die hoë en verhewe seders van die Libanon, en teen al die eikebome van Basan, teen al die hoë berge en al die verhewe heuwels, teen elke hoë toring en elke versterkte stadsmuur, teen al die handelskepe en teen al die imposante bote. Die trots van mense word neergeslaan, die hooghartigheid van manne word omskep in vernedering. Die Here alleen sal verhewe wees op daardie dag. Die nuttelose afgode – met hulle is dit uit en gedaan. Mense sal in die grotte tussen rotse skuilgaan en in gate in die grond, uit vrees vir die Here, vanweë sy verhewe glansrykheid, wanneer Hy opstaan om die aarde te verskrik. Op daardie dag sal mense hulle nuttelose afgode van silwer en hulle nuttelose afgode van goud wat hulle vir hulleself gemaak het om in aanbidding voor te buig, wegwerp vir die rotte en vlermuise – om dan in rotsskeure en holkranse skuil te gaan uit vrees vir die Here, vanweë sy verhewe glansrykheid, wanneer Hy opstaan om die aarde te verskrik. Hou op om julle te bekommer oor die mens; hy is net 'n asem in 'n neus! Ja, waarom moet met hom rekening gehou word? Ja, kyk, die Here, die Heer, Heerser oor alle magte, gaan uit Jerusalem en Juda elke stut en steun verwyder: alle steun op brood, en alle steun op water, op helde en krygsmanne, regters en profete, voorspellers en oudstes, op •aanvoerders van vyftig en manne van aansien, raadgewers, ervare towenaars en kundige besweerders. Die Here sê: “Ek maak jong manne hulle bevelvoerders; kwaadwilliges sal oor hulle heers. Die mense sal mekaar vertrap – die een die ander, elkeen sy medemens. 'n Jong man sal 'n ou man aanval, en 'n nikswerd 'n geëerde. As 'n man sy familielid vasgryp in die huis van sy vader en sê, ‘Jy het 'n oorkleed, jy moet ons •gesagvoerder wees; hierdie puinhoop sal onder jou beheer wees,’ sal hy op daardie dag teenstribbel en sê, ‘Ek is nie 'n geneser nie, en in my huis is geen brood en geen oorkleed nie. Julle mag my nie aanstel as gesagvoerder oor mense nie.’ Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval. Hulle tonge en hulle dade was teen die Here gerig, om sy blik, wat eerbied inboesem, uit te daag. Hulle vooroordeel getuig teen hulle; en hulle sonde – soos Sodom maak hulle dit bekend, en steek dit nie weg nie. Wee hulle! Want hulle doen hulleself kwaad aan. “ Sê vir die regverdiges dat dit goed sal gaan, want die vrug van hulle dade sal hulle geniet. Wee die goddeloses! Dit sal sleg gaan; want wat hulle hande aangerig het, sal aan hulle gedoen word. My volk – sy verdrukkers is geweldenaars, skuldeisers heers oor hulle. My volk, jou leiers lei jou op 'n dwaalweg; oor die rigting van jou paaie is hulle in die war.” Die Here het sy plek ingeneem vir die hofstryd; Hy staan gereed om mense te oordeel. Die Here kom met 'n klag teen die oudstes van sy volk en teen hulle aanvoerders: “Julle het self die wingerd afgewei. Wat geroof is van die magtelose, is in julle huise. Wat gaan met julle aan? Julle vertrap my volk, julle vergruis die gesigte van magteloses.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. Die Here sê: “Omdat die vroue van Sion hovaardig is, met uitgestrekte nek rondloop, en met verleidelike oë al trippelend wegstap, met ringe wat klingel aan hulle enkels, sal my Heer die vroue van Sion se skedels met skurfte aantas; die Here sal hulle voorhoofde ontbloot. ” Op daardie dag sal my Heer die versierings wegneem: die enkelringe, sonnetjies en halfmaantjies, die oorbelle, armbande en sluiers, die kopbande, enkelkettings en lyfserpe, die reukflesse, amulette, ringe en neusringe, die feesklere, mantels, skouermantels en handsakkies, die deurskynende klere, linnehemde, •tulbande en sjaals. In plaas van die geur van speserye sal daar stank wees, in plaas van 'n gordel 'n tou, in plaas van haarlokke 'n kaal kop, in plaas van deftige klere, 'n roukleed, in plaas van skoonheid 'n brandmerk. Jou manne, Sion – deur die swaard sal hulle val, jou sterk manne in die oorlog. Sion se ingange sal weeklaag en treur, kaalgestroop van mense, sal sy op die grond sit. Op daardie dag sal sewe vroue een man vasgryp en sê: “Ons eie brood sal ons eet en ons eie klere sal ons dra, laat jou naam net oor ons genoem word; neem ons bespotting weg!” Op daardie dag sal die loot van die Here pragtig en luisterryk wees; en die opbrengs van die land sal die trots en roem wees van dié Israeliete wat ontkom het. Dié wat oorbly in Sion, wat agtergelaat word in Jerusalem, sal heilig genoem word, almal wat vir die lewe opgeskryf is in Jerusalem. As my Heer die vuilheid van die vroue van Sion afgewas, en die bloedskuld van Jerusalem uit haar midde weggespoel het, deur 'n gees wat oordeel en 'n gees wat wegvee, sal die Here oor die hele gebied van die berg Sion en oor die byeenkoms by Sion bedags 'n wolk skep, en snags rook en die glans van vuurvlamme. Ja, oor alles wat luisterryk is, sal dit 'n gewelf vorm. 'n Takskerm sal dit bedags wees as skaduwee teen die hitte, en 'n skuilplek en beskutting teen stortbuie en reën. Ek wil oor my geliefde sing: my geliefde se lied oor sy wingerd. My geliefde het 'n wingerd gehad op 'n vrugbare heuwel. Hy het dit bewerk, die klippe uitgehaal en edeldruiwe daar geplant. Hy het 'n toring gebou in die middel daarvan, en ook 'n giskuip daarin uitgekap. Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer. “ Daarom, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, besleg tog tussen My en my wingerd. Wat moet nog aan my wingerd gedoen word wat Ek nie reeds daarin gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer? Daarom wil Ek aan julle bekend maak wat Ek aan my wingerd gaan doen: Ek gaan sy doringheining verwyder, sodat dit bewei word. Ek gaan sy gepakte klipmuur afbreek, sodat dit 'n vertrapte plek word. Ek sal dit 'n verwoeste plek maak; dit sal nie gesnoei en nie geskoffel word nie. Doringstruike en onkruid sal opskiet, en aan die wolke sal Ek opdrag gee om nie 'n druppel daarop te laat reën nie.” Ja, die wingerd van die Here, Heerser oor alle magte, is die huis van Israel; en die manne van Juda is die plante waarin Hy Hom verlustig. Hy het gewag op reg, maar kyk, daar was regskending, op geregtigheid, maar kyk, daar was hulpgeroep. Wee hulle wat huis by huis voeg, wat ploegland by ploegland voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen in die land woon. Met my eie ore het ek die Here, Heerser oor alle magte, hoor sweer: “Baie huise sal 'n skrikbeeld word – die grotes en mooies is sonder inwoner. 'n Wingerd op grond wat in tien dae met twee beeste geploeg kan word, sal een bat lewer, en 'n gomer saad sal 'n efa lewer.” Wee hulle wat vroeg in die môre opstaan, naarstig soek na sterk drank, en wat teen skemeraand sloer, dat die wyn hulle kan warm maak. Daar is lier en harp, tamboeryn en fluit, en wyn by hulle feesmaaltye. Maar op dit wat die Here doen, slaan hulle nie ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie raak nie. Daarom gaan my volk in ballingskap vanweë 'n gebrek aan kennis; sy geëerdes word mense wat honger is, en sy gepeupel raak uitgedor van die dors. Daarom het die •doderyk sy keel wyd oopgemaak, en sy mond oopgesper sonder perk. Die stad se luisterrykes en gespuis, die lawaaimakers en uitbundiges in haar sal daarin afdaal. Mense sal neergebuig word, manne sal verneder word, hovaardiges sal hulle oë moet neerslaan. Die Here, Heerser oor alle magte, is verhewe in sy regspraak; die heilige God betoon Hom heilig deur geregtigheid. Jong ramme sal wei asof dit hulle weiveld is; en die ruïnes van vetgevoerdes – vreemdes sal daar eet. Wee hulle wat sondeskuld saamsleep met bande van bedrog, en sonde soos met die toue van 'n wa – hulle wat sê: “Hy moet gou maak, sy werk moet vinnig gebeur, sodat ons dit kan sien; die plan van die Heilige van Israel moet ontvou, in vervulling gaan, sodat ons dit kan weet.” Wee hulle wat die slegte dinge goed noem, en die goeie dinge sleg, hulle wat die duisternis tot lig maak en die lig tot duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat wys is in hulle eie oë, en hulleself as verstandig beskou. Wee hulle wat helde is by die drink van wyn, en wat bekwame manne is by die meng van sterk drank, wat goddeloses regverdig verklaar vir 'n omkoopgeskenk, en regverdiges hulle reg ontneem. Daarom, soos wanneer strooi deur tonge van vuur verteer word, en droë gras in vlamme wegsink, so sal hulle wortel wees soos iets wat verrot, en hulle bloeisel sal as stof opstyg; want hulle het die wet van die Here, Heerser oor alle magte, verwerp, en die woord van die Heilige van Israel het hulle geminag. Daarom het die toorn van die Here teen sy volk ontbrand. Hy het sy hand teen hulle uitgestrek en hulle geslaan. Die berge het gebewe, en hulle lyke was soos vullis in die strate. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. Hy hef 'n banier op vir 'n nasie wat van ver af kom, en fluit vir een aan die einde van die aarde. Kyk, hierdie nasie kom vinnig, haastig. By hom is niemand uitgeput nie, en niemand struikel nie. Hy sluimer nie in en slaap nie; die skorte om sy heupe is nie losgemaak nie, en sy sandaalriempies nie losgeskeur nie. Sy pyle is skerpgemaak, en al sy boë is gespan; die hoewe van sy perde is so hard soos vuurklip, en sy strydwawiele kom aan soos 'n stormwind. Sy brul is soos dié van 'n leeu. Hy brul soos jong leeus, hy grom en gryp prooi; hy sleep weg, en daar is niemand wat kan red nie. Op daardie dag sal hy oor sy prooi grom soos 'n bulderende see. Iemand sal na die land staar, en kyk, daar is 'n beklemmende donkerte; die lig is verduister vanweë die wolke oor die land. In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op 'n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword. Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore! Want ek is 'n mens met onrein lippe, en by 'n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” Een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool by hom wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het. Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.” Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!” Hy het gesê: “Gaan sê vir hierdie volk, ‘Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’ Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!” Daarop vra ek: “Tot wanneer, my Heer?” Hy het geantwoord: “Totdat die dorpe vervalle lê sonder inwoners, die huise sonder mense is, die land verval tot 'n woesteny, en die Here die mense ver wegdryf, en die verlatenheid in die land groot is. As daar nog 'n tiende in die land is, sal die land weer aan verwoesting uitgelewer wees. Tog sal by hulle 'n stomp oorbly, soos van 'n •terebintboom en 'n eikeboom wanneer hulle neergevel is. Die stomp van die land is 'n heilige geslag. ” In die tyd van Agas, seun van Jotam, seun van Ussia, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, asook Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, teen Jerusalem opgetrek vir oorlog. Hulle was egter nie in staat om teen haar te veg nie. Toe die berig aan die huis van Dawid gebring is, “Aram het by Efraim aangesluit, ” het Agas se hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van 'n bos voor wind bewe. Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan tog uit om Agas te ontmoet, jy en Sjear-Jasjoeb, jou seun, by die einde van die watervoor na die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is. Sê vir hom, ‘Wees versigtig, maar bly kalm! Moenie bang wees nie! Moenie lafhartig raak oor hierdie twee rokende houtstompe nie, oor die brandende toorn van Resin en die Arameërs en die seun van Remalja nie, omdat Aram teen jou kwaad beplan het, ook Efraim en die seun van Remalja, met die woorde: “Laat ons teen Juda optrek, hulle die skrik op die lyf jaag en dit dan vir ons verower. Laat ons dan 'n koning daarin aanstel, die seun van Tabeal.” ’ “ So sê my Heer, die Here, ‘Dit sal nie tot stand kom nie, dit sal nie gebeur nie. Immers, die hoof van Aram is Damaskus, en die hoof van Damaskus is Resin. Nog vyf-en-sestig jaar, dan is Efraim vernietig en nie meer 'n volk nie. Die hoof van Efraim is Samaria, en die hoof van Samaria is die seun van Remalja. As julle nie vertroue het nie, sal julle beslis nie behoue bly nie.’ ” Die Here het weer met Agas gepraat en gesê: “Vra vir jou 'n teken van die Here jou God; vra diep af na die •doderyk, of hoog na bo. ” Maar Agas het geantwoord: “Ek sal nie vra nie, en ek sal die Here nie uitdaag nie.” Daarop sê Jesaja: “Luister tog, huis van Dawid! Is dit nie vir julle genoeg om mense te vermoei nie, dat julle ook my God moet vermoei? Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet, sodat hy kan weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies. Ja, nog voordat die kind sal weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê. Die Here sal egter dae soos daar nie was sedert die tyd toe Efraim van Juda weggebreek het nie, laat aanbreek oor jou, jou volk en jou familie: die koning van Assirië! “ Op daardie dag sal die Here fluit vir die vlieë wat aan die einde van die strome van Egipte is, en vir die bye wat in die land Assirië is. Hulle sal kom en almal gaan sit in die dale by die kranse, in die rotsskeure, en op al die doringbosse en by al die drinkplekke. “ Op daardie dag sal my Heer met 'n skeermes wat gehuur is anderkant die Rivier, met die koning van Assirië, die kop en hare van die voete afskeer; dit sal ook die baard verwyder. “ Op daardie dag sal iemand 'n jong koei en twee stuks kleinvee aan die lewe hou; en vanweë die oorvloed van melk wat hulle gee, sal hy dikmelk eet. Ja, dikmelk en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het. “ Op daardie dag sal elke plek waar daar duisend wingerdstokke is, wat duisend silwerstukke werd is, aan die doringstruike en onkruid behoort. Met pyl en boog sal mens daar moet ingaan. Ja, van doringstruike en onkruid sal die hele land oortrek wees. Al die heuwels wat met 'n ploegskaar bewerk is – jy sal daar nie ingaan nie, uit vrees vir die doringstruike en onkruid. Dit sal dien as weiplek vir beeste en as 'n plek wat vertrap word deur kleinvee.” Die Here het vir my gesê: “Vat vir jou 'n groot skryftablet en skryf met 'n gewone griffel daarop: Vinnig-buit-spoedig-roof. Ek wil vir My betroubare getuies oproep, die priester Uria en Sagaria, seun van Jeberegja.” Daarna het ek by die profetes ingegaan, en sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe het die Here vir my gesê: “Noem hom Vinnig-buit-spoedig-roof. Want voordat die seun sal weet hoe om te roep ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uit dra.” Die Here het toe weer met my gepraat: “Omdat hierdie volk die water van Siloag, wat sag vloei, verwerp het, en gelukkig is met Resin en die seun van Remalja, daarom: Kyk, my Heer gaan die magtige massas water van die Rivier – die koning van Assirië en al sy hoogwaardigheidsbekleërs – oor hulle bring. “Die rivier sal opstoot oor al sy stroombeddings, en stroom oor al sy walle. Dit sal Juda binnevloei, oorspoel en oorstroom, styg tot teen die nek. Oor die volle breedte van jou land sal sy oopgespreide vlerke wees, Immanuel! “ Span saam, volke, en word verpletterend verslaan! Gee aandag, alle ver plekke op aarde! Omgord julle, en word verpletterend verslaan! Omgord julle, en word verpletterend verslaan! Beraam 'n plan, en dit word verydel! Bespreek die saak, en daar kom niks van nie; want God is met ons!” Ja, so het die Here vir my gesê toe Hy met 'n sterk hand my daarteen gewaarsku het om die pad van hierdie volk te loop: “ Julle moet nie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie; en waarvoor hulle bang is, daarvoor moet julle nie bang en bevrees wees nie. Die Here, Heerser oor alle magte, Hom moet julle as heilig erken, en Hy is die Een vir wie julle bang en bevrees moet wees. Hy sal 'n heiligdom word, en 'n klip waarteen 'n mens jou stamp, 'n rots waaroor 'n mens struikel; vir die twee huise van Israel sal Hy 'n vangnet word, en 'n valstrik vir die inwoners van Jerusalem. Baie sal daaroor struikel, en val en gebreek word; hulle sal verstrik en gevang word.” Bind die getuienis toe! Hou die onderrig verseël by my leerlinge! Ek sal wag op die Here, wat sy gesig verberg vir die huis van Jakob; ek sal op Hom bly hoop. Hier is ek en die kinders wat die Here aan my gegee het as tekens en simbole in Israel, afkomstig van die Here, Heerser oor alle magte, wat op die berg Sion woon. Wanneer hulle vir julle sê, “Raadpleeg die waarsêergeeste en voorvadergeeste wat fluister en mompel – moet 'n volk nie sy gode raadpleeg, die dooies ter wille van die lewendes nie?” moet julle antwoord: “Gaan na die onderrig en die getuienis!” Hulle moet beslis antwoord volgens hierdie uitspraak, waarteen geen beswering bestand is nie. Die volk sal die land deurkruis, bedruk en verhonger. En wanneer hulle honger is, sal hulle woedend word en hulle koning vervloek en, terwyl hulle boontoe kyk, hulle God vervloek. Na die grond sal hulle staar, en kyk, uitgedryf in die duisternis, is daar net benoudheid en donkerheid, angs sonder lig. Ja, daar sal nie 'n ligstraal wees vir hulle wat angs ervaar oor die land nie. In 'n vroeër tyd het Hy vernedering gebring vir die land Sebulon en die land Naftali. In die toekoms bring Hy eer vir die weg na die see, oorkant die Jordaan en die gebied van die nasies. Die volk wat in duisternis ronddwaal, het 'n groot lig gesien; hulle wat in 'n stikdonker land woon – oor hulle het 'n lig geskyn. U het die nasie vermeerder, U het hulle vreugde groot gemaak. Hulle ervaar vreugde voor U, soos die vreugde in die oestyd, soos dié wat juig wanneer hulle buit verdeel. Want die las van hulle juk en die hout oor hulle skouers, die stok van hulle slawedrywer, het U verpletter soos op die dag van Midian. Ja, elke stewel wat stamp met 'n gedreun, en elke kledingstuk wat in bloed gerol is, is bestem vir verbranding, is kos vir die vuur. Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen. My Heer het 'n woord gestuur teen Jakob, en dit het in Israel geval. Die hele volk het dit ervaar, Efraim en die inwoners van Samaria, wat hoogmoedig en vol selfvertroue sê: “Bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons herbou. Wildevyebome is afgekap, met sederbome sal ons dit vervang.” Die Here het die vyande van Resin se mag teen hom verhoog en sy vyande aangehits – Aram uit die ooste en die Filistyne uit die weste. Hulle het Israel gulsig verslind. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. Maar die volk het nie teruggekeer na Hom wat hulle geslaan het nie, en die Here, Heerser oor alle magte, nie geraadpleeg nie. Die Here het van Israel kop en stert, palmtak en biesie, afgekap op een dag. Oudstes en gerespekteerdes, hulle is die kop, en profete wat leuens verkondig, hulle is die stert. Hulle wat hierdie volk moes lei, het misleiers geword, en hulle wat gelei moes word, het verward geraak. Daarom, oor hulle jong manne verheug my Heer Hom nie, en oor hulle vaderloses en weduwees ontferm Hy Hom nie. Hulle is immers almal van God vervreem, en is kwaaddoeners; elke mond verkondig dwaasheid. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. Ja, goddeloosheid brand soos vuur, dit verteer doringstruike en onkruid; dit steek die struikgewas in die bos aan die brand, en dit dwarrel weg as rook wat opstyg. Deur die gramskap van die Here, Heerser oor alle magte, is die land in duisternis gehul. Die volk het soos kos vir die vuur geword; hulle het nie deernis met mekaar nie. Hulle verslind aan die regterkant, maar bly honger; hulle vreet aan die linkerkant, maar word nie versadig nie. Elkeen van hulle bly vreet aan die vleis van sy voorarm: Manasse aan Efraim en Efraim aan Manasse, en hulle is saam teen Juda. Ondanks dit alles het die Here se toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. Wee hulle wat vaste voorskrifte van onreg uitvaardig, skrywers wat voortdurend iets neerskryf wat moeite besorg – om die regte van armes te dwarsboom, om die magteloses van my volk van hulle reg te ontneem, sodat weduwees hulle buit kan word, en hulle die vaderloses kan beroof. Wat gaan julle doen op die dag van afrekening, tydens die storm wat uit die verte aankom? Na wie sal julle vlug vir hulp, en waar gaan julle julle rykdom agterlaat? Niks daarvan nie! Hulle sal tussen gevangenes die rug buig, en tussen gesneuweldes val. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. “Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – 'n staf is dit in hulle hand. Teen 'n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle 'n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei. Hy het immers gesê, ‘Is my bevelvoerders nie almal konings nie? Is Kalno nie soos Karkemis, en Hamat soos Arpad of Samaria soos Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van nuttelose afgode bekom het, hulle wie se gesnede beelde dié van Jerusalem en Samaria oortref het – sal ek dan nie met Jerusalem en haar afgode maak net soos ek met Samaria en haar nuttelose afgode gemaak het nie?’ ” En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë, omdat hy gesê het: “Met die krag van my hand het ek opgetree, en in my wysheid – ja, ek het insig. Ek verwyder die grense van volke, hulle voorraadkamers plunder ek, en, as die sterke, slaan ek wie op trone sit, neer. Asof dit 'n voëlnes is, het my hand die rykdom van die volke bekom; soos mens eiers insamel wat in 'n nes agtergelaat is, het ek die hele aarde ingesamel. Daar was nie 'n vlerk wat geklap het, 'n bek wat oopgegaan of getjirp het nie.” Kan 'n byl spog teen die een wat met hom kap; of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag, asof 'n stok die een swaai wat hom optel, of 'n staf die een optel wat nie hout is nie? Daarom sal die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, onder Assirië se vet mense 'n uitterende siekte instuur, en onder sy geëerdes sal 'n brand uitbreek wat soos 'n egte vuur sal brand. Die Lig van Israel sal 'n vuur word, en sy Heilige 'n vlam. Die vlam sal brand en hulle onkruid en doringstruike op een dag verteer. Dit sal die geëerdes van sy bos en wingerd vernietig – siel sowel as liggaam. Dit sal wees soos 'n invalide wat wegkwyn. Wat oorbly van die bome van sy bos, sal so min wees dat 'n kind dit sal kan neerskryf. Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die Here, die Heilige van Israel. 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek. Daarom, so sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.” Die Here, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte. Op daardie dag sal Assirië se las van jou skouer val, sy juk van jou nek, ook die strop van die juk voor die skof. Hy het teen Aja opgetrek, hy het by Migron verbygegaan; by Migmas het hy sy toerusting geberg. Hulle trek oor die pas: “Geba is ons oornagplek.” Rama is vreesbevange, Gibea van Saul vlug. Skreeu hardop, dogter van Gallim! Luister mooi, Lajesa! Magtelose Anatot! Madmena vlug weg; die inwoners van Gebim soek skuiling. Vandag nog roep hy halt in Nob. Hy beduie met sy hand na die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem. Kyk, die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met 'n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val. Maar 'n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die gees van die Here sal op hom rus – die gees van wysheid en insig, die gees van raad en sterkte, die gees van kennis en ontsag vir die Here. Hy sal genot put uit ontsag vir die Here. Hy sal nie 'n beslissing vel volgens wat sy oë sien nie, en nie teregwys volgens wat sy ore hoor nie. Hy sal regverdig beslis oor die armes, en die magteloses van die land billik teregwys. Hy sal die land slaan met die stok van sy mond, en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. Geregtigheid sal 'n gordel om sy middel wees, en betroubaarheid 'n gordel om sy heupe. 'n Wolf sal by 'n lam vertoef, en 'n luiperd sal by 'n boklam gaan lê, 'n kalf, 'n jong leeu en vetgemaakte vee bymekaar – 'n klein seuntjie sal hulle lei. 'n Koei en 'n beerwyfie sal saam wei, en hulle kleintjies sal saam gaan lê. 'n Leeu sal soos 'n bees gras eet. 'n Suigeling sal speel by die gat van 'n horingslang, en 'n kleuter sal sy hand uitsteek na die nes van 'n kobra. Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie; want die land sal vol wees van die kennis van die Here, soos water die see bedek. Op daardie dag sal die wortel van Isai as banier vir die volke bly staan – die nasies sal daarna vra, en sy rusplek sal luisterryk wees. Op daardie dag sal my Heer weer, vir 'n tweede keer, sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk te koop – hulle wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die eilande van die see. Hy sal 'n banier opsteek vir die nasies; Hy sal die verstrooides van Israel versamel, en dié van Juda wat uitmekaar gejaag is, byeenbring uit die vier uithoeke van die aarde. Die naywer van Efraim sal wyk, en die teenstanders van Juda sal uitgeroei word. Efraim sal nie afgunstig wees op Juda nie, en Juda sal nie vyandig optree teenoor Efraim nie. Na die westekant sal hulle neerswiep op die berghang van die Filistyne – saam beroof hulle mense uit die ooste. Op Edom en Moab sal hulle die hand lê, en die Ammoniete sal hulle onderdane word. Die Here sal die tong van die Egiptiese See verdeel, sy hand oor die Rivier laat gaan met sy geweldige wind. Hy sal dit in sewe strome uitmekaar slaan; Hy sal mense met sandale daar laat deurloop. Daar sal 'n grootpad uit Assirië wees vir die res van sy volk, dié wat oorgebly het, soos daar vir Israel was die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het. Jy sal op daardie dag sê: “Ek dank U, Here, Ja, U was toornig op my, maar u toorn het bedaar, U troos my. Kyk, God is my verlossing; ek vertrou en is nie ontsteld nie. Ja, die Here, die Here is my toevlug en my sterkte; Hy het my tot hulp gekom. Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing. Julle sal op daardie dag sê, ‘Prys die Here! Roep sy Naam uit! Maak onder die volke sy dade bekend! Verkondig dat sy Naam verhewe is! Besing die Here, want verhewe dinge het Hy gedoen; dit moet bekend word oor die hele aarde.’ Roep uit en jubel, inwoners van Sion, want die Heilige van Israel is groot in julle midde.” 'n Profesie oor Babel, wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is. “Hou op 'n kaal heuwel 'n banier omhoog; roep hulle hardop toe, wink met die hand, sodat hulle die poorte van vooraanstaandes binnegaan. Ek self het my gewydes opdrag gegee; Ek het selfs my helde ontbied, met die oog op my toorn – hulle wat triomfantelik is oor my verhewenheid.” Luister! Die gedruis op die berge soos van baie manskappe! Luister! Die gedreun van koninkryke, van nasies wat byeen is! Die Here, Heerser oor alle magte, monster 'n leër vir oorlog. Hulle is aan die kom uit 'n ver land, van die einde van die hemel af – die Here en die werktuie van sy vervloeking, om die hele aarde ten gronde te laat gaan. Huil, want die dag van die Here is naby! Soos 'n verwoesting kom dit van die Almagtige. Daarom sal alle hande slap word, en elke mensehart ineenkrimp. Hulle raak angsbevange; krampe en geboortepyne pak hulle beet – soos 'n vrou wat geboorte gee, krimp hulle ineen. Hulle staar mekaar aan – soos vlamme is hulle gesigte. Kyk, die dag van die Here is aan die kom – wreed, vol gramskap en brandende toorn – om die aarde 'n skrikbeeld te maak, en die sondaars van die aarde daarvan af uit te delg. Ja, die sterre aan die hemelruim, en Orion met sy sterrebeelde laat nie meer hulle lig skyn nie. Die son word donker sodra dit opkom, en die maan straal nie sy lig uit nie. “Ek sal van die wêreld rekenskap eis oor boosheid, en van goddeloses oor hulle sondeskuld. Ek sal 'n einde maak aan die hoogmoed van vermeteles; die trots van geweldenaars sal Ek verander in vernedering. Ek sal sterflinge skaarser maak as fyngoud, mense skaarser as goud uit Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal uit sy plek skud vanweë die gramskap van die Here, Heerser oor alle magte, op die dag van sy brandende toorn. Dit sal wees soos met 'n verskrikte gasel, en kleinvee wat niemand bymekaar hou nie. Elkeen van hulle sal na sy volk draai, en elkeen van hulle na sy land vlug. Elkeen wat gevind word, sal deurboor word; en elkeen wat weggesleep word, sal val deur die swaard. Hulle kinders sal voor hulle oë te pletter geslaan word; hulle huise sal geplunder word, en hulle vroue sal verkrag word. Kyk, Ek gaan die Meders teen hulle aanhits, hulle wat silwer nie hoog aanslaan nie, en in goud geen genot vind nie. Die boogskutters sal jongmanne verpletter. Met die vrug van die moederskoot toon hulle geen meegevoel nie; oor kinders stort hulle nie 'n traan nie. Met Babel, die sieraad onder koninkryke, die trotse pragstuk van die Galdeërs, sal dit wees soos met God se verwoesting van Sodom en Gomorra. Dit sal nooit weer bewoon word nie, en geslag ná geslag nie 'n tuiste bied nie. Arabiere sal nie daar tent opslaan nie, en herders sal nie 'n kudde daar laat rus nie. Woestyndiere sal daar gaan rus. Die huise sal vol uile wees; steenuile sal daar tuis wees, en •veldgode sal daar ronddans. Hiënas sal in die vestings lag, en jakkalse in die weelderige paleise. Babel se tyd is voor die deur; haar lewensdae sal nie verleng word nie.” Maar die Here sal Hom oor Jakob ontferm; Hy sal Israel weer kies, en hulle op hulle grond tot rus bring. Vreemdelinge sal by hulle aansluit, hulle by die huis van Jakob voeg. Volke sal Israel neem en hulle terugbring na hulle plek. Dan sal die huis van Israel hulle as eiendom neem, as slawe en slavinne op die grondgebied van die Here. Israel sal dié wegvoer wat hulle as gevangenes weggevoer het, en heers oor dié wat hulle verdruk het. En dan, die dag wanneer die Here jou rus gee van jou swaarkry en jou onrus, en van die harde arbeid wat jou opgelê is, sal jy hierdie spotlied sing oor die koning van Babilonië. Jy sal sê: “Hoe het die verdrukker tot 'n einde gekom, die verdrukking opgehou! Die Here het die stok van goddeloses gebreek, die staf van die heersers, wat volke in gramskap geslaan het met slae sonder ophou, wat nasies in toorn vertrap het met vervolging sonder om terug te hou. Die hele aarde beleef rus en kalmte, mense breek uit in jubelkrete. Selfs die sipresse is verheug oor jou; die seders van die Libanon sê, ‘Vandat jy daar lê, klim geen houtkapper op na ons toe nie.’ Die •doderyk daaronder is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou aankoms. Dit maak die skimme wakker oor jou; al die voorbokke van die aarde, al die konings van die nasies staan op van hulle trone. Hulle almal reageer en sê vir jou, ‘Ook jy is so swak gemaak soos ons, net soos ons het jy geword. Jou hoogmoed is afgebring na die doderyk, ook die geluid van jou harpe. Onder jou vorm maaiers 'n bed, wurms bedek jou.’ ” Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het! Jy is die een wat in jou hart gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde. Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke, my gelykstel aan die Allerhoogste. Jy is egter na die doderyk afgebring, tot in die afgeleë put. Hulle kyk na jou, hulle staar na jou, hulle beskou jou aandagtig: “Is dit die man wat die aarde laat beef het, koninkryke laat sidder het? Hy het die bewoonde wêreld soos 'n woestyn gemaak, die stede daarvan afgebreek. Sy gevangenes het hy nie vrygelaat om huis toe te gaan nie.” Al die konings van die nasies, hulle almal, rus eervol, elkeen in sy eie tuiste. Maar jy, jy is weggesmyt, weg van jou graf, soos 'n verfoeilike takkie, oordek met gesneuweldes, met hulle wat deurboor is deur die swaard, dié wat afdaal na die klippe van die put – as 'n vertrapte lyk. Jy sal nie met hulle verenig word in 'n graf nie; want jou land het jy verwoes, jou mense het jy doodgemaak. Die geslag kwaaddoeners sal nooit weer vermeld word nie. Maak vir sy kinders 'n slagplek gereed weens die sondeskuld van hulle voorouers. Hulle mag nie opstaan en die land in besit neem, sodat die oppervlakte van die aarde weer vol stede is nie. “Ek sal teen hulle opstaan,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Ek sal van Babel uitroei naam en oorblyfsel, kind en nageslag,” is die uitspraak van die Here. “Ek maak van Babel waterryke vleilande, die domein van uile. Ek sal haar wegvee met 'n besem wat verdelg.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. Die Here, Heerser oor alle magte, het 'n eed afgelê met dié woorde: “Soos Ek iets bedink, so sal dit gebeur; soos Ek beplan, kom dit tot stand: Dit is om Assirië te breek in my land; op my berge sal Ek hom vertrap. Sy juk sal van my volk wyk, sy las sal van hulle skouers wyk.” Dit is die besluit wat oor die hele aarde geneem is; en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies. Ja, die Here, Heerser oor alle magte, het besluit – wie kan dit verydel? Sy hand is uitgestrek – wie kan dit afweer? In die sterfjaar van koning Agas is hierdie profesie ontvang: “Jy, ganse Filistea, moet jou nie verheug dat die stok wat jou geslaan het, gebreek is nie! Want uit die wortel van 'n slang sal 'n kobra voortkom; en dié lewer weer 'n vlieënde vurige slang. In my weiding sal armes wei, en die behoeftiges sal veilig gaan lê; maar deur honger sal Ek jou wortel laat sterf, en wat van jou oorbly, sal die hongersnood ombring. “Huil, poort! Roep om hulp, stad! Sidder, ganse Filistea! Want uit die noorde kom 'n rookwolk, en daar is in sy geledere niemand wat uitsak nie. Watter antwoord moet die gesante van die nasie dan kry? ‘Die Here het Sion gegrondves, en in haar sal die magteloses van sy volk skuiling vind.’ ” Profesie oor Moab. Ja, oornag is Ar-Moab verwoes, vernietig. Ja, oornag is Kir-Moab verwoes, vernietig. Hulle gaan op na die tempel; Dibon gaan na die offerhoogtes om te huil. Moab weeklaag oor Nebo en Medeba; op al hulle koppe is kaal plekke, elke baard is afgeskeer. In hulle strate het hulle rouklere aan; op hulle dakke en hulle dorpspleine weeklaag almal, terwyl hulle huilend neersak. Gesbon en Elale roep om hulp; tot by Jahas word hulle stemme gehoor. Daarom skreeu die gewapende manne van Moab; Moab se moed begewe hom. My hart roep dit uit oor Moab. Sy vlugtelinge is al by Soar, by Eglat-Selisija. Ja, die opdraande na Lugit – terwyl hulle huil, gaan hulle daarteen op; ja, op pad na Goronajim laat hulle noodroepe opklink oor die verwoesting. Ja, die waters by Nimrim word 'n afgryslike plek, want die gras verdor, die plantegroei is tot niet – daar is geen groenigheid meer nie. Daarom, wat hulle gespaar het, wat weggesit is, dit dra hulle oor die Wilgerspruit. Ja, die hulpgeroep weergalm oor die grondgebied van Moab; hulle weeklag dring deur tot by Eglajim, hulle weeklag bereik Beër-Elim, want die waters by Dimon is vol bloed. Tog gaan Ek Dimon verder belas – daar wag leeus vir wie vrykom van Moab, vir wie oorbly in die land. Stuur ramlammers van die regeerder van die land uit Sela deur die woestyn na die berg van die dogter van Sion. Soos voëls wat vlug, 'n broeisel wat verjaag is, is die vroue van Moab by die driwwe van die Arnon. Kom met 'n plan, Sion, neem 'n besluit! Maak jou skaduwee soos die nag in die middel van die dag. Steek dié wat verdryf is, weg! Dié wat vlug, moet jy nie verraai nie. Laat die vlugtelinge van Moab by jou vertoef. Wees vir hulle 'n skuilplek teen die verwoester. Wanneer die verdrukker nie meer daar is nie, die verwoesting afgeloop het, die vernielers uit die land verdwyn het, sal, deur troue liefde, 'n troon gevestig word. Daarop sal iemand in getrouheid in die tent van Dawid sit – iemand wat regspreek, wat streef na wat reg is, en ervare is in geregtigheid. Ons het gehoor van die trots van Moab, van die groot vermetelheid. Sy hoogmoed, sy trots en woedebuie, sy gespog, is blote skyn. Daarom weeklaag Moab oor Moab, hulle almal weeklaag. Oor die saamgeperste rosyne van Kir-Geres kla julle, heeltemal verslae; want die terrasse van Gesbon het verdroog, ook die wingerde van Sibma. Die grondeienaars van die nasies het die stad se edeldruiwe platgetrap. Dit het voorheen selfs tot by Jaser gestrek, die woestyn in gerank. Die stad se ranke was welig, dit het die see oorgesteek. Daarom treur ek, soos Jaser treur, oor die wingerde van Sibma. Ek sal jou met my trane deurweek, Hesbon, en ook Elale; want oor jou somervrugte en jou graanoes het die vreugdekrete stil geword. Vreugde en gejuig is weggeneem uit die vrugteboorde; in die wingerde word daar nie gejubel nie, word vreugderoepe nie aangehef nie. Wat wyn in die parskuipe betref – die druiwetrappers trap niks uit nie. “Aan vreugdekrete het Ek 'n einde gemaak.” Daarom, soos 'n lier kla my ingewande oor Moab, my binneste oor Kir-Geres. Wanneer Moab weer sy verskyning maak, hom afsloof op die offerhoogtes, wanneer hy by sy heiligdom aankom om te bid, sal hy niks uitrig nie. Dit is die woord wat die Here vroeër teen Moab uitgespreek het. Maar nou sê die Here: “Binne drie jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal die luister van Moab iets minderwaardigs wees, ten spyte van sy groot menigte. Die oorblyfsel wat min, klein, sal wees, sal nie krag hê nie.” Profesie oor Damaskus. “Kyk, Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees, dit gaan 'n vervalle puinhoop word. Die dorpe by Aroër is verlate – aan veekuddes sal dit behoort. Hulle sal daar gaan lê, en niemand sal hulle opjaag nie. Versterkte stede sal uit Efraim verdwyn, ook die koningskap uit Damaskus. Met wat van Aram oorbly, sal dit wees soos met die luister van die Israeliete.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “ Op daardie dag sal die luister van Jakob vervaag; sy vet aan sy liggaam sal verdwyn. Dit sal wees soos wanneer iemand met die oes graanhalms insamel, en soos wanneer iemand koringare in sy arm bymekaarmaak. Dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die vallei van Refaïm: Daar sal by Jakob oesreste oorbly. Soos met die afslaan van olywe sal twee of drie ryp olywe aan die bopunt van 'n tak wees, vier of vyf aan die lote van 'n boom wat dra,” is die uitspraak van die Here, die God van Israel. Op daardie dag sal die mens opkyk na sy Maker; sy oë sal gerig wees op die Heilige van Israel. Hulle sal nie opkyk na die altare, na die werk van hulle hande nie; en wat hulle vingers gemaak het, daarna sal hulle nie kyk nie – die asjeras en die wierookaltare. Op daardie dag sal Israel se sterk stede wees soos dié wat verlaat is deur die Hetiete en Amoriete, wat hulle verlaat het vanweë die Israeliete. 'n Woesteny sal dit word, omdat jy die God wat jou verlos, vergeet het, die Rots wat jou toevlugsoord is, nie onthou het nie. Daarom lê julle pragtige tuine aan, plant julle die steggies van 'n vreemde god. Die dag wanneer julle plant, laat julle al groei; die oggend wanneer julle saai, laat julle al uitspruit. Die oes sal egter verdwyn in 'n tyd van siekte en ongeneeslike pyn. Wee! Die gedreun van baie volke – soos die dreuning van die oseane dreun hulle. Die gedruis van nasies – soos die gedruis van magtige water druis hulle. Ja, nasies – soos die gedruis van magtige water, druis hulle. Maar Hy berispe hulle, en hulle vlug ver weg. Hulle word voortgedryf op die bulte soos kaf voor die wind, soos tolbosse voor 'n stormwind. Teen die aand – kyk, daar is skielik verskrikking! Voor die oggend is dit nie meer daar nie! Dit is die deel van ons plunderaars, die lot van hulle wat ons beroof. Wee die land met die gevleuelde bote, anderkant die riviere van Kus, wat gesante stuur oor die see, in papirusbootjies oor die watervlak! Gaan, vinnige boodskappers, na 'n nasie wat lank en glansend is, 'n volk wat wyd en syd gevrees word, 'n sterk en seëvierende nasie, wie se land verdeel word deur riviere! Almal wat op die aarde woon, al julle bewoners van die wêreld, wanneer 'n banier op die berge opgesteek word, moet julle kyk; en wanneer 'n •ramshoring geblaas word, moet julle luister. Want so het die Here vir my gesê: “Ek sal rustig wees en uit my woonplek toekyk, soos versengende hitte in helder daglig, soos 'n newel in die hitte van die oestyd. Ja, voor die oes, wanneer die bottyd verby is, en die groen druiwe wat ryp word tot volle bloei kom, word die lote met snoeimesse afgesny, en die hegranke verwyder, afgebreek. Hulle word saam agtergelaat vir die roofvoëls op die berge en diere van die land. Die roofvoëls sal die somer daarop deurbring, en al die diere van die land sal daarop oorwinter.” In daardie tyd sal geskenke gebring word vir die Here, Heerser oor alle magte, deur 'n volk wat lank en glansend is, 'n volk wat wyd en syd gevrees word, 'n sterk en seëvierende nasie, wie se land verdeel word deur riviere – na die plek toe waaraan die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, verbonde is, na die berg Sion. Profesie oor Egipte. Kyk, die Here ry op 'n vinnig bewegende wolk en gaan na Egipte. Die nuttelose afgode van Egipte beef voor Hom; Egipte se hart krimp ineen. “ Ek gaan Egiptenare teen mekaar aanhits, sodat elkeen teen sy familielid sal veg en elkeen teen sy medemens – stad teen stad, koninkryk teen koninkryk. Egipte se gees sal binne-in hom gebreek word; sy planne sal Ek verwar. Hulle sal nuttelose afgode raadpleeg, ook die geeste van afgestorwenes, waarsêergeeste en voorvadergeeste. Ek sal Egipte oorgee in die hand van 'n harde meester; 'n hardvogtige koning sal oor hulle heers. ” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here, Heerser oor alle magte. Die water sal opraak in die see, die rivier sal opdroog en droog lê. Die strome begin stink, die strome van Egipte loop leeg en droog op; die riete en palmiete word swart, ook die rietbosse aan die Nyl, by die Nylmonding. Al die saailande langs die Nyl verdroog en raak verwaaid, en niks bly oor nie. Die vissers weeklaag en treur, almal wat hoeke in die Nyl gooi; hulle wat nette oor die water uitgooi, kwyn weg. Dié wat met vlas werk, die wolkammers, staan beskaamd; die wewers word bleek. Die land se wewers is verpletter; almal wat vir 'n loon werk, is diep terneergedruk. Blote sotte is die •hoë amptenare van Soan; die slimste raadgewers van die farao se raad is stompsinnig. Hoe kan julle vir die farao sê: “Ek is van die groep van wyses, 'n nasaat van konings uit die verre verlede.” Waar is hulle dan, jou wyses? Laat hulle jou tog inlig! Hulle moet mos weet wat die Here, Heerser oor alle magte, oor Egipte besluit het. Die hoë amptenare van Soan het sotte geword; die hoë amptenare van Nof koester vals hoop. Die steunpilare van die land se stamme het Egipte laat steier. Die Here het midde-in die land 'n gees van verwarring bygevoeg. Die verwarring laat Egipte steier in alles wat hy doen, soos 'n dronke steier in sy braaksel. Vir Egipte is daar niks wat kop of stert, palmtak of biesie kan doen nie. Op daardie dag sal Egipte wees soos vroue. Hulle sal sidder en beef vir die opgeligte hand van die Here, Heerser oor alle magte, wat Hy oor Egipte laat gaan. Dan sal die land Juda vir Egipte 'n verskrikking wees. Elke keer wanneer iemand die land vir hom noem, sal hy bang wees oor die besluit van die Here, Heerser oor alle magte, die besluit wat Hy oor hom geneem het. Op daardie dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän praat en wat aan die Here, Heerser oor alle magte, trou sweer. Een van die stede sal Stad van Verwoesting genoem word. Op daardie dag sal daar 'n altaar van die Here in die middel van Egipteland wees, en op sy grens 'n gedenksteen ter ere van die Here. Dit sal dien as 'n teken en 'n getuienis vir die Here, Heerser oor alle magte, in Egipteland; want hulle sal die Here om hulp roep vanweë hulle verdrukkers. Dan sal Hy vir hulle 'n verlosser stuur wat die saak sal behartig en hulle red. Die Here sal Hom aan die Egiptenare bekend maak, en die Egiptenare sal Hom erken op daardie dag. Hulle sal Hom dien met slagoffers en •graanoffers, en aan die Here geloftes aflê en dit nakom. Die Here sal Egipte tref met 'n plaag, tref én genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer. Hy sal hulle smeekbedes verhoor en hulle genees. Op daardie dag sal daar 'n grootpad wees vanaf Egipte na Assirië. Die Assiriërs sal na Egipte gaan, en die Egiptenare na Assirië. Die Egiptenare sal saam met die Assiriërs die Here dien. Op daardie dag sal Israel die derde wees saam met Egipte en Assirië – 'n seën midde-in die wêreld. Die Here, Heerser oor alle magte, sal hulle seën deur te sê: “Geseënd is my volk Egipte, ook Assirië, my handewerk, en my eiendom, Israel.” In die jaar toe die tartan na Asdod gekom het, toe Sargon, die koning van Assirië, hom gestuur het, het hy oorlog gemaak teen Asdod en dit ingeneem. In dié tyd het die Here by monde van Jesaja, seun van Amos, gesê: “Gaan, haal die rouklere van jou heupe af, en jou sandale, trek dit van jou voete af!” Hy het so gemaak en kaal en kaalvoet rondgeloop. Die Here het gesê: “Soos my dienskneg, Jesaja, drie jaar lank kaal en met kaalvoete rondgeloop het, as 'n teken, as 'n voorteken wat betrekking het op Egipte en Kus, so sal die koning van Assirië die gevangenes van Egipte en die ballinge van Kus weglei, jonk en oud – kaal en met kaalvoete, en met ontblote sitvlakke. Die naaktheid van Egipte! Die bondgenote sal verskrik en beskaamd wees vanweë Kus, hulle hoop, en vanweë Egipte, hulle pronkstuk. Die bewoners van hierdie kusgebied sal op daardie dag sê, ‘Kyk, so gaan dit met ons hoop, waarheen ons vir hulp gevlug het om gered te word van die koning van Assirië. Hoe sal óns dan ontvlug?’ ” Profesie oor die woestyn by die see. Soos stormwindvlae in die Negev kom hy uit die woestyn, uit 'n vreesaanjaende land. 'n Onverbiddelike openbaring is my meegedeel: “Die verraaier pleeg verraad, die verwoester verwoes. Ruk op, Elam! Medië, beleër! Aan al die gesug maak Ek 'n einde.” Daarom is my heupe aan die sidder en oorval krampe my soos die krampe van 'n vrou wat geboorte gee. Ek krimp ineen oor wat ek hoor, ek is angsbevange oor wat ek sien. My hart is verbyster; ontsetting het my oorval. Die skemeraand, kosbaar vir my, het vir my angs gebring. Dek die tafel, pak die kussings reg, eet, drink – staan op, bevelvoerders! Smeer die skilde met olie! Want so het my Heer vir my gesê: “Gaan sit 'n wag uit! Oor wat hy sien, moet hy berig. Wanneer hy strydwaens sien met spanne perde, ruiters op donkies, ruiters op kamele, moet hy noulettend aandag gee, baie noulettend.” Die een wat op die uitkyk was, roep toe: “Op my uitkykpos, my Heer, staan ek heeldag lank, op my wagpos neem ek stelling in, nag vir nag. Kyk daar! 'n Man op 'n strydwa met 'n span perde is op pad!” Hy begin toe praat en sê: “Geval, geval het Babel, en al die beelde van sy gode lê stukkend op die grond! ” My vertrapte volk, deel van my dorsvloer, wat ek gehoor het van die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, het ek julle meegedeel. Profesie oor Duma. Iemand roep na my uit Seïr: “Brandwag, hoe lank is die nag nog? Brandwag, hoe lank is die nag nog?” Die brandwag antwoord: “Die môre kom, maar ook weer die nag. As julle vrae het, vra! Kom weer terug!” Profesie in die woestyn. In die ruigte in die woestyn, moet julle oornag, karavane van die mense van Dedan. Bring water om dié wat dors het, te ontmoet. Julle wat in die gebied van Tema woon, gaan die vlugtelinge tegemoet met kos vir hulle. Want vir swaarde het hulle gevlug, vir die ontblote swaard, vir die gespanne boog, vir die geweld van oorlog. Ja, so het my Heer vir my gesê: “Binne 'n jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal al die luister van Kedar tot 'n einde kom. Wat oorbly van die helde van Kedar se boë, sal min in getal wees.” Ja, die Here, die God van Israel, het gespreek. 'n Profesie oor die Dal van Visioene. Wat is dit dan met jou, dat al jou mense op die dakke klim, rumoerige stad vol lawaai, uitgelate dorp? Jou slagoffers is nie slagoffers van die swaard nie, nie gestorwenes van die oorlog nie. Al jou •aanvoerders het saam gevlug, sonder boog is hulle gevang. Almal van jou wat gevind is, wat lankal reeds gevlug het, is saam gevang. Daarom het ek gesê: “Kyk weg van my – ek huil bitterlik. Moenie daarop aandring om my te probeer troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie.” Want 'n dag van paniek, van vertrapping en verwarring in die Dal van Visioene, is gereed by die Here, Heerser oor alle magte. 'n Geskreeu klink op – hulpkrete na die berg. Elam het pylkokers opgeneem – met 'n troepemag, met perde. Kir ontbloot skilde. Stad, die keur van jou valleie is vol strydwaens! Die ruiters neem in slagorde stelling in by die stadspoort! Die beskutting van Juda is verwyder. Op dié dag kyk jy met vertroue, stad, na die wapenrusting in die Saal van die Bos. Die bresse in die mure by die Stad van Dawid sien julle raak – dat dit baie is. Julle gaar die water van die onderste dam op; die huise in Jerusalem tel julle; julle breek die huise af om die stadsmuur ondeurdringbaar te maak. 'n Opgaardam maak julle tussen die twee stadsmure vir die water van die ou dam. Maar julle kyk nie met vertroue na Hom wat die stad gemaak het nie; en Hom wat haar gevorm het in die verre verlede, sien julle nie raak nie. My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, het op daardie dag 'n oproep gedoen tot 'n gehuil, tot roubeklag, tot die kaal skeer van koppe en die aangord van rouklere. Maar kyk, daar is vreugde en blydskap: “Laat ons beeste doodmaak en kleinvee slag, vleis eet en wyn drink! Laat ons eet en drink, want môre sterf ons! ” Die Here, Heerser oor alle magte, het Hom aan my geopenbaar terwyl ek luister. “Vir hierdie sondeskuld sal nie vir julle versoening gedoen word totdat julle sterf nie,” het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. So sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “Gaan na daardie versorger, na Sebna, hoof van die hofhouding, en vra hom, ‘Wat maak jy hier? Wie van jou mense is hier, dat jy hier vir jou 'n graf uitgekap het?’ ” Hy was besig om op 'n hoë plek sy graf uit te kap, om in die rots vir hom 'n tuiste uit te beitel. “ ‘Kyk, die Here gaan jou, manhaftige man, baie ver wegwerp. Hy gaan jou stewig toedraai, jou in 'n bondel, soos 'n bal, kragtig wegslinger na 'n land wat wyd uitstrek na alle kante. Daar sal jy sterf; daar sal jou roemryke strydwaens wees – die skande van die huis van jou heer! Ek sal jou uit jou pos verwyder, jy sal uit jou amp ontslaan word.’ “Op daardie dag sal Ek my dienskneg roep, Eljakim, seun van Gilkija. Ek sal jou bokleed vir hom aantrek, met jou lyfserp sal Ek hom versterk, jou gesag aan hom oordra. Hy sal 'n vader word vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda. Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer plaas. Hy sal oopmaak, en niemand sal toesluit nie; hy sal toesluit, en niemand sal oopmaak nie. Ek sal hom as 'n pen inslaan op 'n stewige plek; hy sal as 'n roemryke troon geld vir sy familie. “Hulle sal die volle gewig van sy familie daaraan ophang: die spruite en lote, en al die kleiner houers, van die bakkies af tot by al die kruike. Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal die pen wat op 'n stewige plek ingeslaan is, meegee. Dit sal losbreek en val. Die las wat daaraan was, sal vernietig word, want die Here het gespreek.” Profesie oor Tirus. Weeklaag, handelskepe! Want dit is verwoes, sonder huise, sonder toegang. In die land van die Kittiërs is aan hulle berig gebring. Wees stil, bewoners van die eiland! Handelaars van Sidon wat die see oorsteek, het jou, Tirus, gevul. Met die groot waters langs was die saad van Sigor, ja, die oes van die Nyl, haar inkomste – dit was wins uit die nasies. Skaam jou, Sidon! Want, toevlugsoord van die see, die see sê: “Ek het nie ineengekrimp, nie geboorte gegee nie; ek het nie jong manne grootgemaak, nie jong meisies opgevoed nie.” Wanneer die berig Egipte bereik, krimp hulle ineen soos met die tyding oor Tirus. Vaar oor na Tarsis! Weeklaag, bewoners van die eiland! Is dít julle uitgelate stad? In die verre verlede lê haar oorsprong; haar voete het haar gedra om tydelik ver weg te woon. Wie het so teen Tirus besluit, sy wat krone uitdeel, wie se handelaars •hoë amptenare is, wie se handelslui die geëerdes van die wêreld is? Die Here, Heerser oor alle magte, het so besluit – om die hoogmoed van al die hoëlui te knou, om al die geëerdes van die wêreld met minagting te behandel. Bewerk jou grond soos by die Nyl, dogter van Tarsis! Daar is geen skeepswerf meer nie. Sy hand het Hy oor die see uitgestrek; Hy het koninkryke laat bewe. Die Here self het 'n opdrag gegee oor Kanaän – dat sy vestings verdelg moet word. Hy het gesê: “Jy sal nie meer uitgelate wees nie, onteerde maagdelike dogter van Sidon. Die Kittiërs, as jy gereedmaak, na hulle oorvaar – ook daar sal jy geen rus hê nie.” Kyk, die land van die Galdeërs – dié volk bestaan nie meer nie. Assirië het dit vir woestyndiere bestem: Hulle het beleëringstorings opgerig; hulle het die land se vestings gesloop, dit 'n bouval gemaak. Weeklaag, handelskepe! Want julle toevlugsoord is verwoes. Op daardie dag sal Tirus vergete raak, sewentig jaar lank, soos die lewensdae van een koning. Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan soos in die lied oor die prostituut: “Neem 'n lier, deurkruis die stad, vergete prostituut; bespeel dit goed, sing baie liedjies, sodat jy onthou word!” Ná verloop van sewentig jaar sal die Here aan Tirus aandag gee. Sy sal terugkeer na haar hoereloon, sy sal hoereer met al die koninkryke van die wêreld oor die oppervlakte van die aarde heen. Haar handelswins en hoereloon sal aan die Here gewy wees. Dit sal nie opgegaar of weggesit word nie, maar aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon, sal haar wins behoort, sodat hulle genoeg kan eet en pragtig geklee kan gaan. Kyk, die Here gaan die land kaal stroop en dit verniel; Hy gaan sy oppervlakte skend, sy inwoners uitmekaar jaag. Dit sal met priesters gaan soos met die volk, met hulle eienaars soos met slawe, met hulle eienaresse soos met slavinne, met verkopers soos met kopers, met leners soos met uitleners, met skuldenaars soos met geldskieters. Die land word heeltemal kaal gestroop, volledig geplunder. Ja, die Here, Hy het hierdie uitspraak gemaak. Die aarde verdroog, dit verskrompel; die bewoonde wêreld kwyn weg, dit verskrompel. Die vername mense van die aarde kwyn weg. Die aarde lê besoedel onder sy inwoners: Hulle het wette oortree, vaste voorskrifte die rug toegekeer, 'n ewige verbond verbreek. Daarom verteer 'n vloek die aarde, en boet dié wat daarop woon. Daarom word die bewoners van die aarde minder, en bly daar weinig sterflinge oor. Die •nuwe wyn het opgeraak, wingerde kwyn weg, almal wat vrolik van hart was, sug. Die vreugde van die tamboeryn het opgehou, die gejoel van uitgelate mense het tot 'n einde gekom, die vreugde van die lier het opgehou. Geen lied meer wanneer wyn gedrink word nie – sterk drank is bitter vir wie dit drink. Die leë stad lê verbreek – elke huis geslote, ontoeganklik. Daar is 'n gejammer oor wyn in die strate; alle blydskap het weggesink, verban is die vreugde van die land. Wat in die stad oor is, is 'n skrikbeeld; tot 'n murasie is die stadspoort verpletter. Ja, so sal dit midde-in die land tussen die volke wees – soos met die afslaan van olywe, soos met oesreste as die druiweoes verby is. Dit is hulle wat hardop sal jubel. Oor die verhewenheid van die Here sal hulle uitroep uit die weste. Daarom, vereer die Here in die land van die môrelig! Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – 'n sieraad vir die Regverdige. Maar ek sê: “Dit is klaar met my! Dit is klaar met my! Wee my!” Verraderlike mense is ontrou; verraderlike mense pleeg verraad. Verskrikking, 'n vanggat, 'n vangnet wag op julle, bewoners van die aarde. Wie vlug vir die geluid van verskrikking, val in die vanggat; wie uitklim uit die vanggat, word gevang in die vangnet. Want vensters in die hemel is oopgemaak, die fondamente van die aarde bewe. Al krakend bars die aarde uitmekaar, al waggelend wankel die aarde, steierend slinger die aarde heen en weer. Onvas steier die aarde soos 'n dronke, ruk heen en weer soos 'n takskerm. Sy oortreding rus swaar op hom; hy val en staan nie weer op nie. Op daardie dag sal die Here afreken, in die hemel, met die hemelliggame, op die aarde, met die konings van die aarde. Hulle sal byeengebring word vir opsluiting, as gevangenes in 'n put – toegesluit in 'n kerker. Ná 'n lang tyd sal met hulle afgereken word. Die volmaan sal verleë wees, die helder son sal beskaamd staan. Want die Here, Heerser oor alle magte, regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes in heerlikheid. Here, U is my God. Ek verheerlik U, ek prys u Naam; want U het wonders gedoen – planne uit die verre verlede bestendig en betroubaar uitgevoer. Ja, U het van 'n stad 'n kliphoop, van 'n versterkte stad 'n vervalle plek gemaak. Die vesting van vreemdes is nie meer 'n stad nie; dit sal nooit herbou word nie. Daarom sal 'n sterk volk U eer, 'n stad van magtige nasies sal U vrees. Ja, U was 'n toevlug vir armes, 'n toevlug vir behoeftiges in hulle nood, 'n skuilplek teen stortreën, 'n skaduwee teen hitte. Want die asem van geweldenaars is soos stortreën teen 'n muur, soos hitte in 'n dor streek. U doof die rumoer van vreemdes uit; soos hitte in die skadu van 'n wolk, word die lied van geweldenaars gedemp. Die Here, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke 'n feesmaal van ryk geregte voorberei, 'n feesmaal met beleë wyn, met ryk geregte vol murg, met gesuiwerde, beleë wyn. Op hierdie berg sal Hy die sluier verswelg, die sluier oor al die volke, die geweefde bedekking oor al die nasies. Hy sal die dood vir ewig verswelg; my Heer, die Here, sal die trane van alle gesigte afvee. Die bespotting van sy volk sal Hy van die hele aarde af verwyder. Ja, die Here het gespreek. Hulle sal op daardie dag sê: “Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die Here op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding. ” Ja, die hand van die Here rus op hierdie berg; maar Moab word daar waar hy is, vertrap, soos strooi vertrap word in 'n mishoop. Moab sal sy hande uitstrek in die strooi, soos 'n swemmer sy hande uitstrek om te swem. Maar die Here sal sy hoogmoed in vernedering verander, ondanks die vaardigheid van sy hande. Die versterkte stad, die toevlugsoord van jou stadsmure, laat Hy tuimel, haal Hy neer, gooi Hy neer op die grond, tot in die stof. Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: “Ons het 'n sterk stad; God se redding is die stadsmure en verdedigingswal. Maak oop die poorte, sodat 'n regverdige nasie kan ingaan, hulle wat getrou bly! 'n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word. Vertrou te alle tye op die Here, want die Here, die Here is 'n ewige rots. Ja, dié wat hoog woon, die ontoeganklike stad, laat Hy tuimel. Hy haal haar neer, Hy haal haar tot die grond toe neer – Hy gooi haar neer tot in die stof. Voete vertrap haar, die voete van magteloses, die treë van armes.” Die paaie van regverdiges is gelyk; reguit is die weë van regverdiges wat U vir hulle skoonmaak. Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag. U Naam, u gevierde Naam, was ons hartsverlange. Met my hele wese smag ek na U in die nag, ja, my gees in my binneste soek na U. Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is. Wanneer genade aan goddeloses bewys word, leer hulle nie wat reg is nie. In 'n land waar opregtheid heers, pleeg hulle onreg; die verhewenheid van die Here sien hulle nie raak nie. Here, dat u hand opgehef is, merk hulle nie op nie. Die ywer vir u volk – laat hulle dit opmerk en beskaamd staan. Laat ook die vuur, bestem vir u vyande, hulle verteer. Here, U beskik vir ons vrede; ja, ook alles wat ons vermag het, het U vir ons bewerk. Here, ons God, ander here as U het oor ons regeer. Alleen deur u toedoen bely ons u Naam. Dooies kan nie leef nie, skimme kan nie opstaan nie; daarom het U rekenskap geëis, hulle uitgedelg. Alle herinnering aan hulle het U uitgewis. U het die nasie vermeerder, Here, U het die nasie vermeerder, U het Uself verheerlik. U het alle grense van die land uitgebrei. Here, in nood het hulle U opgesoek; hulle was benoud vanweë die fluistering dat u tugtiging vir hulle bedoel is. Soos 'n swanger vrou wat op die punt is om geboorte te gee, ineenkrimp en uitroep in haar geboortepyne, so was ons vanweë u teenwoordigheid, Here. Ons was swanger, het ineengekrimp, maar dit was asof ons aan wind geboorte geskenk het. Redding kon ons nie vir die land bewerk nie, die bewoners van die wêreld het nie geval nie. Jou dooies sal leef, Israel; hulle lyke sal opstaan. Word wakker en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n hemelse dou, en die aarde sal aan skimme geboorte gee. Gaan, my volk, gaan in jou binnekamers in, en sluit jou deure agter jou toe! Kruip 'n kort rukkie weg, totdat die vervloeking verbygegaan het! Want kyk, die Here gaan uit sy woonplek kom om van die bewoners van die aarde rekenskap te eis oor sondeskuld. Die grond sal die bloed daarop onthul, en nie langer hulle wat daarop gedood is, bedek nie. Op daardie dag sal die Here met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak. Op daardie dag sal daar 'n pragtige wingerd wees. “Sing daaroor! Ek, die Here, hou daaroor wag, gee dit telkens water. Sodat niks dit skade aandoen nie, hou Ek dag en nag daaroor wag. Ek is nie meer woedend nie. As Ek doringstruike en onkruid sou vind, sou Ek 'n stryd daarmee aanknoop; Ek sou dit alles saam aan die brand steek. Of anders sou hulle moes vasgryp aan die toevlug wat Ek bied, met My vrede maak, ja, vrede met My maak.” In die tye wat kom, sal Jakob wortel skiet; Israel sal in bloei staan en uitspruit. Die oppervlakte van die aarde sal bedek wees met die opbrengs. Het die Here Israel geslaan soos Hy dié geslaan het wat vir Israel geslaan het? Of is Israel om die lewe gebring op dieselfde manier as dié wat deur die Here om die lewe gebring is? Deur haar prys te gee, haar weg te stuur, het U telkens met haar geworstel. Op die dag van die oostewind, het die Here haar met sy sterk wind weggedryf. Daarom, op hierdie manier word versoening gedoen vir die sondeskuld van Jakob; en dít sal die uitkoms wees van die wegneem van sy sonde: Wanneer hy al die altaarklippe laat word soos kalkklippe wat stukkend geslaan is, sal die asjeras en wierookaltare nie langer bly staan nie. Ja, 'n stad wat versterk was, lê eensaam, 'n weiveld wat versaak en agtergelaat is, soos 'n woestyn. Kalwers wei daar, en daar gaan hulle lê; hulle verwoes haar lote. Wanneer haar takke verdroog het, sal hulle afgebreek word; vroue sal kom en dit aan die brand steek. Ja, dit is nie 'n verstandige volk nie; daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie, sal die Een wat hulle gevorm het, geen genade aan hulle betoon nie. Op daardie dag sal die Here are uitslaan, vanaf die stroom van die Rivier tot by die Spruit van Egipte. Julle, Israeliete, sal soos are opgetel word, een vir een. Op daardie dag sal daar op 'n groot •ramshoring geblaas word; en hulle wat verlore is in die land Assirië, en verdryf is na Egipteland, sal kom. Hulle sal voor die Here in aanbidding buig op die heilige berg in Jerusalem. Wee die trotse kroon van die dronkes van Efraim! Dit is 'n verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei. Wee hulle wat deur wyn oorweldig is! Kyk, my Heer het iemand wat sterk en kragtig is – soos 'n wolkbreuk met hael, soos 'n vernietigende storm. Soos 'n wolkbreuk met kragtige, verspoelende water sal hy dit teen die grond gooi met mag. Dit sal met voete vertrap word – die trotse kroon van die dronkes van Efraim. Die verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei, sal soos een van die vallei se vroeë vye voor die someroes wees. Dit is skaars in sy handpalm, of die een wat dit raakgesien het, sluk dit weg. Op daardie dag sal die Here, Heerser oor alle magte, 'n sierlike kroon, 'n eervolle krans word vir die oorblyfsel van sy volk. Hy sal 'n gees van geregtigheid wees vir hulle wat gaan sit vir die regspraak, en heldekrag vir hulle wat die geveg terugdryf na die stadspoort. Ook hierdie mense slinger van wyn en waggel van sterk drank: Priester en profeet slinger van sterk drank, hulle is verwar deur wyn, hulle waggel van sterk drank; hulle slinger tydens 'n visioen, hulle steier tydens 'n uitspraak. Ja, alle tafels is vol braaksel, vomeersel, sonder 'n skoon plek. Vir wie wil hy dan kennis leer, vir wie die boodskap verduidelik? Vir hulle wat van melk gespeen is, van die borste afgehaal is? Die boodskap is: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar. ” Ja, deur honende lippe en deur 'n vreemde taal sal die Here met hierdie volk praat – Hy wat vir hulle gesê het: “Hier is die rusplek. Gee rus aan die een wat uitgeput is! Hier is die verposing.” Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die Here vir hulle wees: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar, sodat hulle gaan en agtertoe struikel, gebreek, verstrik en gevang word.” Daarom, hoor die woord van die Here, julle spotters, regeerders van hierdie volk in Jerusalem! Ja, julle sê: “Ons het 'n verdrag met die dood gesluit, met die •doderyk 'n ooreenkoms aangegaan. Wanneer die verswelgende vloed verbykom, sal dit ons nie bereik nie; want ons het leuens ons skuilplek gemaak, en agter bedrog kruip ons weg.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek lê 'n fondamentklip in Sion, 'n uitgesoekte klip – 'n kosbare hoeksteen as fondament gelê. Die een wat vertrou, hoef nie haastig weg te gaan nie. Ek maak die reg 'n maatlyn en geregtigheid 'n skietlood. Hael sal die skuilplek van leuens wegvee, en water sal die wegkruipplek wegspoel. Julle verdrag met die dood sal nietig verklaar word, en julle ooreenkoms met die doderyk sal nie standhou nie. Wanneer 'n verswelgende vloed verbykom, sal julle 'n vertrapte moddermassa word. Telkens wanneer dit verbykom, sal dit julle meesleur. Ja, oggend ná oggend, dag en nag sal dit verbykom. Dit sal net te verskriklik wees om die boodskap te verduidelik. Die bed is immers te kort om op uit te strek, en die kombers te smal om jouself in toe te wikkel.” Ja, soos by die berg Perasim sal die Here opstaan; soos by die vallei in Gibeon sal Hy bewe van ywer om sy dade uit te voer – vreemd is sy dade – en om sy werk te doen – sonderling is sy werk. Moet julle dan nou nie soos spotters gedra nie; anders sal julle boeie nog stywer vas wees. Ja, ek het gehoor: Volslae vernietiging oor die hele land! Dit is bepaal deur my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. Gee aandag en luister na my stem! Gee ag en luister na my woorde! Sal 'n boer die hele tyd ploeg om te saai? Sal hy aanhou voortjies maak en sy grond gelyk werk? Sal hy nie, as hy die oppervlakte gelyk gemaak het, swartkomyn strooi en komyn uitsaai, koring in rye plant, en gars waar dit hoort, en spelt aan die kant nie? Sy God het hom die regte manier geleer, hom onderrig. Swartkomyn word tog nie met 'n dorsplank gedors nie; en die wiel van 'n wa word nie oor komyn gerol nie. Nee, swartkomyn word met 'n stok uitgeklop, en komyn met 'n staf. Broodkoring word fyngestamp – daar word nie vir ewig aangehou om dit uit te trap nie. As iemand sy wawiel en perde daaroor laat gaan, laat hy dit tog nie fyn trap nie. Ook dit het sy oorsprong by die Here, Heerser oor alle magte. Hy voer 'n plan wonderbaarlik uit, Hy doen dit met groot vindingrykheid. “Wee Ariël, Ariël, die stad wat Dawid beleër het! Laat jaar op jaar volg! Laat die feeste hulle kringloop volg! Maar Ek sal Ariël in benoudheid bring, sodat daar verdriet en droefheid sal wees. Dan sal sy vir My soos 'n vuurherd wees. Ek sal jou reg rondom beleër, Ek sal jou met wagposte omring, beleëringswerke teen jou oprig. Jy sal verneder wees, uit die grond sal jy praat, uit die stof sal jou woorde gedemp wees. Soos dié van 'n waarsêergees, sal jou stem uit die grond kom, en uit die stof sal jou woorde gefluister word. Die menigte vreemdes by jou sal soos fyn stof word, en soos kaf wat verwaai die menigte geweldenaars. Dit sal heel onverwags gebeur. Van die kant van die Here, Heerser oor alle magte, sal daar afgereken word, deur donderslae en aardbewings, deur harde geluide, deur storm en stormwind, met verterende vuurvlamme. Dit sal wees soos in 'n droom, soos in 'n naggesig – die menigte van al die nasies wat teen Ariël veg, almal wat haar en haar versterkte vestings beveg, hulle wat haar in die noute bring. Dit sal wees soos wanneer 'n honger mens droom: Kyk, hy is besig om te eet; maar as hy wakker word, is sy keel leeg. Dit sal wees soos wanneer 'n dors mens droom: Kyk, hy is besig om te drink; maar as hy wakker word, is hy uitgeput en sy keel is droog. So sal dit met die menigte van al die nasies wees, hulle wat veg teen die berg Sion.” Wees maar verslae, verstom! Hou julle blind, en wees verblind! Hulle het dronk geword, maar nie van wyn nie. Hulle het gesteier, maar nie van sterk drank nie. Ja, die Here het 'n gees van diepe slaap oor julle uitgestort, Hy het julle oë, die profete, gesluit; julle koppe, die sieners, het Hy bedek. Vir julle het die openbaring van al hierdie dinge geword soos die woorde van 'n verseëlde boekrol, wat hulle gee aan iemand wat kan lees, en sê: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek kan nie, want dit is verseël.” Die boekrol word dan gegee aan iemand wat nie skrif ken nie, met die woorde: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek ken nie skrif nie.” My Heer het gesê: “Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot 'n aangeleerde menslike gebod, daarom, kyk, Ek sal voortgaan om op 'n wonderlike, wonderbaarlike manier met hierdie volk te handel. Die wysheid van hulle wyses sal tot niet gaan, en die insig van hulle verstandiges sal verborge bly.” Wee hulle wat planne vir die Here diep wegsteek! Hulle dade vind in die donker plaas, en hulle sê: “Wie sien ons en wie ken ons?” Julle verdraai alles! Of moet die pottebakker beskou word as gelykwaardig met die klei, dat die maaksel vir sy maker kan sê, “Jy het my nie gemaak nie”, en dit wat gevorm is vir die pottebakker sê, “Hy verstaan nie”? Is dit nie nog net 'n rukkie nie, dan verander die Libanon in 'n vrugteboord, en word die vrugteboord as 'n bos beskou? Die dowes sal op daardie dag die woorde van 'n boekrol hoor. Sonder donkerte en duisternis, sal die oë van blindes sien. Magteloses sal weer vreugde ervaar in die Here, en behoeftige mense sal juig oor die Heilige van Israel. Want gewelddadiges is nie meer daar nie, en spotters is tot niet; almal wat gereed staan om onreg te doen, word uitgeroei – hulle wat mense deur woorde as sondaars brandmerk, wat strikke stel vir dié wat mense in die stadspoort teregwys, en wat oor nietighede regverdiges dwarsboom voor die gereg. Daarom, so sê die Here vir die huis van Jakob, Hy wat Abraham gered het: “Nou sal Jakob nie meer beskaamd staan, sy gesig nie meer bleek word nie. Want wanneer hulle hulle kinders, die werk van my hande, in hulle midde sien, sal hulle my Naam heilig. Hulle sal die Heilige van Jakob se heiligheid erken, en vrees koester vir die God van Jakob. Dan sal hulle wat verbyster van gees is, insig leer ken, en hulle wat gemurmureer het, sal onderrig aanvaar. “Wee die koppige kinders!” is die uitspraak van die Here, “hulle wat daarop uit is om planne uit te voer, maar sonder My, om verdrae te sluit, maar nie volgens my Gees nie – om so sonde by sonde te voeg. Dit is hulle wat aanhou om na Egipte af te gaan, maar na my wil vra hulle nie – om toevlug te soek in die toevlugsoord van die farao, om te skuil in die skadu van Egipte! Vir julle sal die farao se toevlugsoord tot skande strek, en die skuilgaan in die skadu van Egipte sal tot vernedering lei. Ja, Juda se •hoë amptenare was reeds in Soan, en sy boodskappers bereik Ganes. Hulle staan almal beskaamd oor 'n volk wat vir hulle van geen nut is nie, wat nie tot hulp, nie tot voordeel is nie, maar net tot skande, en ook bespotting.” 'n Profesie oor die diere van die Negev. In 'n land van benoudheid en angs, met leeuwyfies en leeumannetjies, met adders en vlieënde vurige slange, vervoer hulle op die rûe van donkiehingste hulle rykdom, en op die boggels van kamele hulle skatte, na 'n volk wat van geen nut is nie. Wat Egipte betref: Hulle hulp is sinloos en nietig; daarom noem ek haar Rahab die Sittende. “Gaan nou, skryf dit, waar hulle by is, op 'n skryftablet, pen dit neer in 'n boekrol, sodat dit vir 'n dag in die toekoms, as 'n getuienis vir altyd, daar sal wees! Want dit is 'n rebelse volk, kinders wat lieg, kinders wat nie wil luister na die Wet van die Here nie, wat vir die sieners sê, ‘Julle mag nie sien nie!’ vir dié wat visioene sien, ‘Julle mag nie vir ons visioene sien wat reg is nie! Vertel vir ons vleiende dinge; sien bedrieglike visioene! Wyk af van die pad! Draai af van die gebaande weg! Hou op om ons lastig te val met die Heilige van Israel!’ ” Daarom, so sê die Heilige van Israel: “Omdat julle hierdie woord verwerp het, vertrou het op afpersing en skelmstreke, en daarop gesteun het, daarom sal hierdie sondeskuld vir julle wees soos die bres in 'n hoë muur wat oorhel om te val, waarvan die ineenstorting skielik, onverwags, sal kom. Dit sal gebreek word soos 'n pottebakkerskruik breek – dit word genadeloos stukkend geslaan, sodat tussen die stukkies geen potskerf gevind kan word om kole uit die vuurmaakplek te haal of water uit 'n kuil te skep nie.” Want so sê my Heer, die Here, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier. Julle sê, ‘Nee, maar op perde sal ons vlug’ – daarom sál julle vlug – ‘op vinniges sal ons ry’ – daarom sál julle agtervolgers wys hoe vinnig hulle is. Eenduisend van julle sal vir die dreigement van een vlug; vir die dreigement van vyf sal julle vlug, totdat daar van julle soveel oorbly soos 'n vaandel op die kruin van 'n berg, soos 'n banier op 'n heuwel.” Om dié rede wag die Here om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag. Ja, volk wat op Sion, in Jerusalem, woon, julle sal sekerlik nie meer huil nie. Die Here sal beslis genade aan julle bewys op julle roepstem om hulp. Wanneer Hy hoor, sal Hy julle antwoord. My Heer sal vir julle brood van kommer en water van verdrukking gee. Maar dan sal julle Groot Leermeester Hom nie meer vir julle verberg nie; julle eie oë sal julle Groot Leermeester sien. Met julle ore sal julle 'n woord agter julle hoor: “Hier is die pad, gaan daarop, wanneer julle regs of links wil hou!” Dan sal julle die plaatwerk van julle silwerafgodsbeelde, en die bedekking van julle vergulde gegote beelde onrein verklaar. Julle sal dit weggooi as iets wat besoedel is. “Gemors!” sal jy daarvoor sê. Hy sal reën gee vir jou saad wat jy in die grond saai, en die opbrengs van die grond sal voedsel wees – dit sal geil en vet wees. Jy sal jou vee op daardie dag laat wei – 'n uitgestrekte weiveld. Die beeste en donkiehingste wat die grond bewerk, sal goeie voer eet, voer wat uitgewan is met 'n houtgraaf en gaffel. Op elke hoë berg en elke verhewe heuwel sal daar leivore, watervore, wees, op die dag van die groot slagting wanneer torings val. Die lig van die volmaan sal wees soos die lig van die helder son, en die lig van die helder son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag wanneer die Here die gebreekte plekke van sy volk verbind, en die wonde wat Hy toegedien het, genees. Kyk, die Naam van die Here kom van ver, sy toorn brand, dit laai op. Sy lippe is vol vervloeking, sy tong 'n verterende vuur. Sy asem is soos 'n stroom in vloed – tot by die nek reik dit. Hy is daarop uit om nasies te skud in die sif van vernietiging. Hy sit teuels wat mislei aan die kake van volke. Vir julle sal daar sang wees soos in die nag van heiliging voor 'n fees – met vreugde in die hart soos in 'n optog met fluite, op pad na die berg van die Here, na die Rots van Israel. Die Here sal sy majestueuse stem laat hoor, die neerkom van sy arm laat sien in heftige striemende toorn – 'n vlam van verterende vuur, gietende reën, stortbuie en haelstene. Ja, vanweë die stem van die Here sal Assirië verskrik wees – met 'n stok sal Hy hom slaan. Elke hou van die staf wat straf, wat die Here op hom laat neerkom, sal onder tamboeryn- en lierspel plaasvind. Met sy oorlogstuig sal Hy met opgeligte hand teen die land veg. Ja, 'n brandstapel is lankal reeds gepak; dit is ook vir die koning gereedgemaak – diep en wyd – 'n stapel, met vuur en hout in oorvloed; die asem van die Here brand soos 'n stroom swawel daarin. Wee hulle wat na Egipte afgaan vir hulp, wat op perde staatmaak, hulle vertroue plaas op strydwaens, omdat daar baie is, en op perderuiters, omdat hulle besonder talryk is. Maar hulle sien nie op na die Heilige van Israel nie; hulle raadpleeg nie die Here nie. Maar ook Hy is wys, en Hy bring onheil; sy woorde herroep Hy nie. Hy sal optree teen 'n huis van boosdoeners, en teen die hulp van hulle wat onreg pleeg. Die Egiptenare is mense, nie God nie; hulle perde is vlees en nie gees nie. En die Here – as Hy sy hand uitstrek, struikel die helper, val dié een wat gehelp word; saam gaan hulle almal tot niet. Ja, so het die Here vir my gesê: “Soos 'n leeu grom, 'n jong leeu by sy prooi – al word 'n hele groep herders teen hom saamgeroep, vir hulle geskreeu word hy nie bang nie, en vir hulle geraas krimp hy nie ineen nie – so sal die Here, Heerser oor alle magte, neerdaal om te veg op die berg Sion, op die Sionsheuwel. Soos voëls bo hulle neste hang, so sal die Here, Heerser oor alle magte, Jerusalem beskerm. Hy sal beskerm en uitred, spaar en laat ontkom. “Keer terug na Hom, teen wie die Israeliete uiters onversetlik was. Ja, op daardie dag sal elkeen sy nuttelose afgodsbeelde van silwer en goud verwerp, die beelde wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het. Assirië sal val deur die swaard, maar nie dié van 'n man nie; en 'n swaard, nie dié van 'n mens nie, sal hom verteer. Hy sal vir sy lewe vlug voor die swaard, en sy jong manne sal dwangarbeid verrig. Sy rots sal vanweë ontsetting vergaan, sy •aanvoerders sal angsbevange wees by die sien van 'n banier. ” Dit is die uitspraak van die Here, wie se vuur in Sion, en wie se oond in Jerusalem is. Kyk, met regverdigheid sal 'n koning regeer, en in geregtigheid sal •hoë amptenare heers. Elkeen van hulle sal daar wees, as 'n skuiling teen die wind, 'n beskutting teen stortbuie, as waterstrome in 'n dor streek, as die skadu van 'n swaar rots in 'n vermoeide land. Die oë van hulle wat sien, sal nie meer wegkyk nie, en die ore van hulle wat hoor, sal aandagtig luister. Die harte van oorhaastiges sal op kennis ag slaan, en die tonge van stamelaars sal vinnig en duidelik praat. 'n Sot sal nie meer “edel” genoem word nie, en 'n skurk sal nie as “hoogheid” aangespreek word nie. Want 'n sot raak sothede kwyt, en sy hart hou hom besig met onreg: deur goddeloosheid te bedryf, deur onwaarhede oor die Here kwyt te raak, deur die kele van hongeriges leeg te laat en deur iets te drinke te weerhou van wie dors is. En 'n skurk – sy werktuie is sleg; hy is die een wat skanddade beplan om magteloses deur bedrieglike woorde uit te roei, ook wanneer 'n behoeftige 'n eis voorlê. Die edele beraam egter edel planne, hy is die een wat staan by wat edel is. Sorgelose vroue, staan op, luister na my stem! Dogters vol vertroue, hoor my woorde! Oor net meer as 'n jaar sal julle sidder, julle wat houtgerus is; want die druiweoes is verby, daar kom nie meer 'n insameling nie. Raak aan die bewe, sorgelose vroue! Sidder, julle wat houtgerus is! Trek julle uit, ontklee! Gord rouklere aan julle heupe! Slaan julleself op die bors oor die pragtige landerye, oor die vrugbare wingerde, oor die grond van my volk. Doringstruike sal daar opkom, ja, waar al die huise vol vreugde, die uitbundige dorp, was. Ja, die vesting lê verwaarloos; die rumoer van die stad is verby. Die Ofel en wagtorings word kaal veld vir altyd – 'n vreugde vir wildedonkies; 'n weiveld vir veekuddes; totdat 'n gees van bo af uitgestort word oor ons, totdat 'n woesteny 'n vrugteboord word, en 'n vrugteboord as 'n bos beskou word. Dan sal die reg in die woesteny tuis wees, en geregtigheid sal in die vrugteboord woon. Die uitwerking van geregtigheid sal vrede wees, die uitkoms van geregtigheid kalmte en vertroue vir altyd. My volk sal in 'n tuiste van vrede woon, in veilige woonplekke, in ongestoorde rusplekke. Dit sal hael wanneer die bos platgeslaan word, wanneer die stad in vernedering neersink. Gelukkig is julle wat langs al die water saai, julle wat beeste en donkies vrye loop gee. Wee jou, verwoester, jy wat nie verwoes is nie, trouelose, aan wie niemand ontrou was nie! Wanneer jy jou verwoestingswerk voltooi het, sal jy verwoes word; wanneer jy ophou om troueloos te wees, sal daar troueloos teen jou opgetree word. Here, wees ons genadig! Op U wag ons. Wees elke oggend ons krag, ja, ons verlossing in 'n tyd van nood. Vir die geluid van 'n gedreun vlug volke; vanweë u verhewenheid word nasies verstrooi. Wat julle gebuit het, nasies, word bymekaargemaak, soos kaalvretersprinkane bymekaarmaak. Soos swerms toesak, word op julle buit toegesak. Die Here is verhewe, ja, Hy woon in die hoogte. Hy vul Sion met reg en geregtigheid. Hy sal bestendigheid aan jou tye bied, 'n rykdom van bystand, wysheid en kennis, ontsag vir die Here – dit is sy skatte. Kyk, die mense van Jerusalem roep om hulp op straat, die boodskappers van vrede huil bitterlik. Gebaande weë was verlate, niemand het meer op die pad verbygegaan nie. Hy het verdrae verbreek, hy het stede geminag, hy het mense nie geag nie. Dit het droog geword, die land was uitgedor; die Libanon was verbluf, het swart geword. Saron het soos die Araba geword; Basan en Karmel het hulle blare verloor. “Nou gaan Ek opstaan,” sê die Here, “nou gaan Ek Myself verhef, nou gaan Ek My oprig. Julle raak swanger van droë gras, gee geboorte aan kaf; julle asem is 'n vuur wat julle sal verteer. Die volke sal 'n kalkbrandery word – afgekapte doringstruike wat 'n vuur aan die brand moet kry. Luister, julle wat ver is, na wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag.” In Sion sidder sondaars van angs; bewing pak hulle beet, hulle wat vervreemd is van God: “Wie van ons kan by 'n verterende vuur vertoef? Wie van ons kan by 'n ewig brandende vuurherd vertoef?” Hy wat eerlik leef en spreek wat reg is, wat wins uit afpersing afwys, wat sy handpalms daarvan weerhou om omkoopgeld te aanvaar, wat niks van bloedvergieting wil hoor nie, niks wat boos is, wil aanskou nie – dit is hy wat op die hoogtes sal woon. Bergvestings in kranse is sy toevlugsoord; sy kos word vir hom voorsien, sy watervoorraad is standhoudend. Jou eie oë sal 'n koning in sy skoonheid sien, sal uitkyk oor 'n wyd uitgestrekte land. Jou hart sal die verskrikking oordink: Waar is hy wat neerskryf, waar hy wat weeg? Waar is hy wat die getal van die torings neerskryf? Dié aanmatigende volk sal jy nie weer sien nie, die volk met spraak wat te moeilik is om te volg, met 'n gestamel van tong wat onverstaanbaar is. Kyk na Sion, die stad van ons feestelike byeenkomste! Jou oë sal Jerusalem sien – 'n ongestoorde tuiste, 'n tent wat nie afgeslaan sal word, waarvan die tentpenne nooit uitgetrek, en die tentlyne nooit losgeruk sal word nie; want daar sal 'n magtige, die Here, by ons wees, by 'n plek van riviere, met breë strome aan alle kante. 'n Boot met spane sal nie daarop vaar nie, 'n magtige skip sal dit nie oorsteek nie. Ja, die Here is ons Regter, die Here is ons Regeerder, die Here is ons Koning – Hy sal ons verlos. Al hang jou takelwerk nou slap, al hou dit nie die mas se voetstuk stewig nie, al span dit nie die banier oop nie, dan sal daar buit in oorvloed verdeel word; selfs lammes sal wat te roof is, plunder. Geen inwoner sal sê, “Ek is siek” nie. Die volk wat in Jerusalem woon, se sondeskuld is vergewe. Kom nader, nasies, om te hoor, volke, gee aandag! Die aarde en alles daarop moet hoor, die wêreld en alles wat daaruit voortkom. Want die grimmigheid van die Here is teen al die nasies gerig, sy woede teen al hulle leërs. Hy sal hulle met die banvloek tref, hulle vir 'n slagting oorlewer. Hulle gesneuweldes sal weggegooi word, en hulle lyke – die stank daarvan sal opstyg. Die berge sal deurweek wees van hulle bloed. Al die hemelliggame sal wegsmelt, en soos 'n boekrol sal die hemel opgerol word. Al die hemelliggame sal verskrompel soos die blare van 'n wingerdstok verskrompel, soos verskrompelde vrugte aan 'n vyeboom. “Ja, my swaard het genoeg te drinke gehad in die hemelruim. Kyk, op Edom gaan dit neerkom, op die volk vir wie my banvloek gaan tref om die oordeel te voltrek. ” Die Here het 'n swaard – vol bloed is dit, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokramme, van die niervet van ramme; want daar is 'n offerfees vir die Here in Bosra, 'n groot slagting in die land van Edom. Buffels sak neer saam met hulle, bulle saam met die sterkes. Hulle grond sal hom vol drink aan bloed, hulle stof sal versadig wees van vet. Ja, daar is 'n dag van wraak vir die Here, 'n jaar van vergelding in die regstryd van Sion. Edom se strome sal in pik verander, haar stof in swael – haar gebied sal brandende pik word. Nag en dag sal dit nie geblus word nie, vir altyd styg haar rook omhoog. Van geslag tot geslag sal sy in puin lê, vir ewig en altyd sal niemand deur haar trek nie. Bontkraaie en kortooruile sal haar in besit neem; grasuile en swartkraaie sal in haar woon. Hy lê die maatlyn van verlatenheid oor haar aan, die weegstene van leegheid. Haar hoëlui – daar sal niks wees wat hulle 'n koninkryk kan noem nie; al haar •hoë amptenare sal niks wees nie. In haar vestings sal dorings opkom – brandnetels en sydissels in haar versterkte stad. Dit sal 'n lêplek vir jakkalse wees, 'n blyplek vir steenuile. Woestyndiere sal hiënas daar raakloop, •veldgode sal na mekaar roep. Ja, Lilit sal daar draal en vir haar 'n rusplek vind. Daar sal 'n uil nesmaak en eiers lê, daarop broei, en dit in haar skaduwee uitbroei. Ja, daar sal jakkalsvoëls saamkom, elkeen by haar maat. Gaan dit na in die boekrol van die Here, en lees: Nie een van hulle ontbreek nie, nie een sal haar maat mis nie; want die mond van die Here het dit beveel, en sy Gees, Hy maak hulle bymekaar. Hy is die Een wat vir hulle die lot gewerp het, en sy hand het die land met die meetsnoer aan hulle toegedeel. Vir altyd sal hulle dit in besit neem, en van geslag tot geslag sal hulle daarin woon. Laat die woestyn en die dor land hulle verheug, laat die Araba juig en blom soos 'n tulp. Laat dit welig blom en juig, ja, met 'n gejuig en 'n gejubel. Die heerlikheid van die Libanon word daaraan gegee, die glansrykheid van Karmel en Saron. Hulle sal die heerlikheid van die Here, die glansrykheid van ons God, sien. Maak die slap hande sterk, versterk die wankelende knieë. Sê vir dié wat angstig is: “Hou moed, moenie bang wees nie! Kyk, hier is julle God; die wraak kom, die vergelding deur julle God. Hy is die Een wat sal kom en julle verlos.” Dan sal die oë van blindes oopgaan, en die ore van dowes sal oopgaan. Dan sal 'n verlamde spring soos 'n wildsbok, en die tong van 'n stomme sal jubel; want in die woestyn sal water uitbars, strome water in die Araba. Die uitgedorde grond sal 'n vleiland word, 'n dorsland vol waterbronne. Op die lêplek van jakkalse, waar hulle gaan lê het, sal daar gras met kalmoesriet en papirus wees. Daar sal 'n gebaande weg, 'n pad wees; Die heilige pad sal dit genoem word. Onreines sal nie daarop verbygaan nie; maar dit sal vir dié wees wat op die pad hou. Sotte sal nie daar ronddwaal nie. Daar sal geen leeus wees nie, en roofdiere sal nie daar kom nie; hulle sal nie daar aangetref word nie. Dié wat losgekoop is, sal daarlangs gaan; dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en 'n gesug sal wegvlug. In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. Die koning van Assirië stuur toe die rabsakee vanaf Lagis na Jerusalem met 'n groot leërmag na koning Hiskia. Hy het stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam, wat aan die pad na die Bleikveld geleë is. Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, het uitgegaan na hom toe, asook Sebna, die sekretaris, en die herout Joag, seun van Asaf. Die rabsakee sê toe vir hulle: “Sê tog vir Hiskia, ‘So sê die opperkoning, die koning van Assirië: “Wat is hierdie bron van vertroue waarop jy staatmaak? Jy dink sekerlik lippetaal is 'n taktiek en 'n kragtige wapen vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan nou, dat jy teen my in opstand is? Kyk, jy stel jou vertroue op Egipte, hierdie geknakte rietstaf wat in 'n mens se handpalm steek en dit deurboor wanneer jy daarop leun. So is die farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. En as jy vir my sou sê, ‘Op die Here ons God vertrou ons’? Is Hy dan nie die Een wie se offerhoogtes en altare Hiskia verwyder het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het, ‘Voor hierdie altaar moet julle in aanbidding buig!’ nie?” Daarom, het my heer gesê, gaan gerus 'n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. Hoe sal jy net een •streekgoewerneur kan terugdryf, een van die onbelangrikste dienaars van my heer, wanneer jy jou vertroue stel op Egipte vir 'n strydwamag en perde? Daarom, het ek sonder die Here se medewete teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Dit is die Here wat vir my gesê het: “Trek op teen hierdie land en verwoes dit!” ’ ” Eljakim, Sebna en Joag sê toe vir die rabsakee: “Praat asseblief •Aramees met u dienaars, want ons verstaan dit. Moenie met ons Judees praat ten aanhore van die manskappe wat op die stadsmuur is nie.” Maar die rabsakee het gesê: “Is dit net na jou heer en na jou wat my heer my gestuur het om hierdie dinge te sê? Is dit nie ook na die manne wat op die stadsmuur sit nie, wat saam met julle hulle ontlasting sal eet en hulle urine sal drink?” Toe gaan staan die rabsakee en roep met 'n harde stem in Judees uit en sê: “Luister na die woorde van die opperkoning, die koning van Assirië! So sê die koning, ‘Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie. Moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou deur te sê: “Die Here sal ons beslis red, en hierdie stad sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” ’ Julle moet nie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië, ‘As julle met my 'n ooreenkoms aangaan en uitkom na my toe, sal elkeen van sy wingerdstok en sy vyeboom eet, en elkeen water uit sy eie opgaarput drink, totdat ek kom en julle neem na 'n land soos julle land – 'n land met koring en •nuwe wyn, 'n land met brood en wingerde. Moenie dat Hiskia julle mislei deur te sê: “Die Here sal ons red!” nie. Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? “ ‘Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim? Kon húlle Samaria uit my hand red? Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here dan Jerusalem uit my hand sal red?’ ” Hulle het egter stilgebly en hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie, want die bevel van die koning was: “Julle moet hom nie antwoord nie!” Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf en herout, het by Hiskia aangekom met geskeurde klere, en aan hom die woorde van die rabsakee meegedeel. Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die huis van die Here gegaan. Hy stuur toe vir Eljakim, hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en die oudstes van die priesters in hulle rouklere na die profeet Jesaja, seun van Amos. Hulle het vir hom gesê: “So sê Hiskia, ‘Hierdie dag is 'n dag van benoudheid en straf en vernedering; want die kinders het tot by die opening van die baarmoeder gekom, maar daar is geen krag om geboorte te gee nie. Miskien hoor die Here u God die woorde van die rabsakee, vir wie die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God uit te tart; en miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het. ’ ” Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, sê Jesaja vir hulle: “So moet julle vir julle heer sê, ‘So sê die Here: “Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. Kyk, Ek gaan 'n gees van hom besit laat neem, en hy sal 'n gerug hoor en terugkeer na sy land. Dan sal Ek hom in sy eie land deur die swaard laat val.” ’ ” Die rabsakee het teruggegaan en die koning van Assirië aangetref waar hy besig was om teen Libna te veg. Hy het immers gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. Die koning van Assirië het egter 'n berig gekry oor Tirhaka, die koning van Kus, wat lui: “Hy het uitgetrek om teen u te veg!” Toe hy dit hoor, het hy boodskappers na Hiskia gestuur met die woorde: “So moet julle vir Hiskia, die koning van Juda, sê, ‘Moenie dat jou God, op wie jy vertrou, jou bedrieg met die woorde: “Jerusalem sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” Kyk, jy het self gehoor wat die konings van Assirië gedoen het aan al die lande deur hulle aan volledige vernietiging oor te gee. Sal jy dan gered word? Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders uitgedelg is, hulle gered – Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa? ’ ” Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here. Hiskia het dit daar voor die Here oopgesprei. Hiskia het toe tot die Here gebid en gesê: “ Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak. Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk! Hoor al die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! Dit is inderdaad so, Here, dat die konings van Assirië al die nasies en hulle lande verwoes en hulle gode in die vuur gegooi het. Want dit was nie gode nie, maar net die werk van mensehande, hout en klip; en hulle het dit vernietig. Daarom, Here ons God, verlos ons uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U alleen die Here is.” Jesaja, seun van Amos, het toe vir Hiskia laat weet: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Wat jy tot My gebid het oor Sanherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.’ Dit is die woord wat die Here oor hom spreek: “ ‘Sy verag jou, dryf die spot met jou, die maagd, die dogter van Sion. Agter jou rug skud sy haar kop, die dogter van Jerusalem. Wie het jy uitgetart en belaster? Teen wie het jy jou stem verhef? Jy het uit die hoogte neergesien op die Heilige van Israel! Deur jou dienaars het jy die Heer uitgetart. Jy het gesê: “Met die menigte van my strydwaens het ek die hoogste berge bestyg, die uithoeke van die Libanon. Ek het sy hoogste seders afgekap, die keur van sy sipresse. Ek het sy verste hoogtes binnegedring, sy digste struikgewasse. Ek is die een wat gegrawe en water gedrink het. Met die holte van my voet het ek al die strome van Egipte drooggelê.” “ ‘Het jy dit nie gehoor nie? In die verre verlede het Ek juis dit voorberei, in die voortyd het Ek dit beplan; nou laat Ek dit aanbreek – dat jy versterkte stede puinhope maak. Hulle inwoners was magteloos, hulle was verskrik en beskaamd. Hulle was veldplante en groen spriete, gras op dakke en terrasse voordat dit kon saad maak. Waar jy woon, jou kom en jou gaan, ken Ek, ook jou getier teen My. Omdat jy so teen My getier het, jou astrantheid my ore bereik het, sit ek my haak deur jou neus en my stang in jou mond. Ek laat jou terugkeer met die pad waarmee jy gekom het. “ ‘ Dit sal vir jou, Hiskia, die teken wees: Eet vanjaar die opslaggraan, in die tweede jaar dit wat self opkom; maar in die derde jaar moet julle saai en oes, wingerde plant en die vrugte daarvan eet. “ ‘Wat van die huis van Juda ontkom het, wat oorgebly het, sal na onder wortel skiet, en na bo vrugte dra. Ja, uit Jerusalem sal wat oorgebly het, uitspruit, uit die berg Sion dit wat ontkom het. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen. ’ “Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië, “ ‘Hy sal hierdie stad nie binnekom nie; hy sal daarin nie 'n pyl afskiet nie; hy sal daarteen nie opruk met 'n skild nie; hy sal nie 'n beleëringswal daarteen ophoop nie. Met die pad waarmee hy gekom het, daarmee sal hy terugkeer, en hierdie stad sal hy nie binnekom nie,’ is die uitspraak van die Here. ‘Ek sal hierdie stad afskerm om dit te red, om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg. ’ ” Die •engel van die Here het uitgetrek en in die kamp van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtigduisend neergevel. Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke! Daarop het Sanherib, die koning van Assirië, kamp opgebreek, weggetrek en teruggegaan. Hy het in Nineve gebly. En toe, terwyl hy besig was om in aanbidding te kniel in die tempel van Nisrok, sy god, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergevel. Hulle het na veiligheid in die land Ararat gevlug. Esarhaddon, sy seun, het in sy plek koning geword. In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja, seun van Amos, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf; jy sal nie leef nie.’ ” Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en tot die Here gebid. Hy het gesê: “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek in getrouheid en met 'n onverdeelde hart voor U geleef het, dat ek gedoen het wat goed is in u oë!” Hiskia het toe bitterlik gehuil. Die woord van die Here het tot Jesaja gekom: “Gaan sê vir Hiskia, ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die greep van die koning van Assirië. Ek sal hierdie stad afskerm. En dit sal vir jou van die Here af die teken wees dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer: Kyk, Ek sal die skaduwee van die sonwyser van Agas wat met die son afgeskuif het, tien eenhede laat terugskuif.” ’ ” Toe het die son die tien eenhede wat dit gesak het op die sonwyser, teruggeskuif. 'n Geskrif van Hiskia, die koning van Juda, toe hy siek was en van die siekte herstel het. Ek het by myself gedink, in die middel van my lewensdae moet ek deur die poorte van die •doderyk gaan. Ek is opgeroep vir die res van my jare. Ek het gedink: Ek sal die Here nie sien nie – die Here in die land van die lewendes. Ek sal nie meer na mense kyk saam met die bewoners van die wêreld nie. My woonplek is afgeslaan en van my weggeneem, soos die tent van 'n herder. Soos 'n wewer het ek my lewe opgerol – van die skering het Hy my losgeknip. Dag en nag laat U my dit ontgeld. Ek het om hulp geroep tot die oggend. Soos 'n leeu, breek Hy al my beendere. Dag en nag laat U my dit ontgeld. Soos 'n swaeltjie, soos 'n kraanvoël, so kerm ek; ek kla soos 'n duif. My oë word klein soos ek kyk na die hemel. My Heer, dit druk swaar op my; staan U vir my in! Wat kan ek sê? Hy het dit vir my gesê; Hy het self opgetree. Sal ek al my lewensjare moeisaam voortgaan, weens die bitterheid van my siel? My Heer, mense leef van wat U sê en doen; en dit geld vir almal in die lewensjare. My lewensasem – U moet my gesond maak, hou my aan die lewe! Kyk, tot vrede het my intense bitterheid gelei; U self het my lewe teruggehou van die kuil van vernietiging, ja, U het al my sondes die rug toegekeer. Want die doderyk sal U nie prys nie; die dood sal U nie loof nie. Dié wat na die put afdaal, verlaat hulle nie op u trou nie. Dit is die een wat leef, die een wat leef – hý prys U, soos ek vandag. 'n Vader kan u trou bekend maak aan sy kinders. Die Here is daar tot my redding; ons sal my snaarinstrumente laat opklink by die huis van die Here solank ons leef. Jesaja het gesê: “Hulle moet saamgeperste droë vye bring en aan die sweer smeer, sodat hy sal kan bly leef.” Hiskia het mos gevra: “Wat is die teken dat ek na die huis van die Here sal opgaan?” In daardie tyd het Merodag-Baladan, seun van Baladan, die koning van Babilonië, briewe en 'n geskenk na Hiskia gestuur. Hy het gehoor dat hy siek was en herstel het. Hiskia was bly oor hulle besoek, en het hulle sy skatkamer gewys – die silwer, die goud, die speserye en die kosbare olie – ook sy hele arsenaal en alles wat in sy voorraadkamers te vinde was. Daar was niks in sy paleis of in sy hele koninkryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie. Jesaja, die profeet, het na koning Hiskia gekom en hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en van waar af het hulle na jou toe gekom?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land het hulle na my gekom, uit Babel.” Jesaja vra toe: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het geantwoord: “Alles wat in my paleis is, het hulle gesien. Daar is niks in my voorraadkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hoor die woord van die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê. ‘ En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.” Hiskia sê toe vir Jesaja: “Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Want daar sal vrede en bestendigheid in my tyd wees. “Troos, troos my volk!” sê julle God. “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die Here 'n dubbele straf ontvang vir al haar sondes. ” 'n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet 'n vallei word. Die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word; alle mense sal dit gelyktydig sien, want die mond van die Here het gespreek.” 'n Stem sê toe: “Roep uit!” En ek vra: “Wat moet ek uitroep? Alle mense is immers gras; en al hulle trou is soos 'n veldblom. Gras verdor, 'n blom verwelk wanneer die asem van die Here daarop blaas. Waarlik, die volk is maar net gras!” “ Ja, gras verdor, 'n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd. ” Klim op 'n hoë berg, Sion, boodskapper van vreugde! Verhef jou stem met krag, Jerusalem, boodskapper van vreugde! Verhef dit, moenie bang wees nie! Sê vir die dorpe van Juda: “Hier is julle God!” Kyk, my Heer, die Here – met krag kom Hy, en sy arm oefen vir Hom heerskappy uit. Kyk, sy vergoeding is by Hom, sy beloning is voor Hom. Soos 'n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy. Wie kan die waters in die holte van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met 'n derde van 'n efa die stof van die aarde opvang, met 'n handskaal die berge weeg, die heuwels met 'n weegskaal? Wie kan die Gees van die Here peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak? Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte, wie onderrig Hom oor die verloop van 'n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend? Kyk, nasies is soos 'n druppel uit 'n leersak; hulle word beskou as net 'n lagie stof op 'n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is. Die Libanonbos se hout is nie genoeg om 'n vuur te maak, en sy wilde diere nie genoeg vir 'n •brandoffer nie. Al die nasies is soos niks voor Hom; deur Hom word hulle beskou as minder as iets niksseggends, minder as 'n nietigheid. Met wie wil julle God vergelyk? Watter afbeelding wil julle langs Hom stel? 'n Afgodsbeeld wat 'n vakman gegiet het, wat 'n smid met goud oorgetrek het, 'n smid met silwer beslaan het? As 'n wydingsgeskenk kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 'n Vaardige vakman soek hy vir hom om 'n afgodsbeeld te maak wat nie omkantel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie? Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie? Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde; die bewoners daarvan is soos koringkrieke. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos 'n doek, dit oopsprei soos 'n tent, sodat mense daar kan woon. Dit is Hy wat maghebbers tot niks maak; die regeerders van die aarde maak Hy 'n nietigheid. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars skiet hulle steggies wortel in die grond, of Hy het reeds op hulle geblaas, en hulle verdor; dan lig 'n stormwind hulle op soos strooi. “Met wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?” vra die Heilige. Kyk boontoe en sien! Wie het hierdie dinge geskep? Dit is Hy wat die hemelse leër een vir een uitlei, hulle almal op die naam roep. Deur die toedoen van Hom wat groot vermoëns en geweldige krag het, ontbreek nie een nie. Waarom sê jy dan, Jakob, en beweer jy, Israel: “My lewenspad is verborge vir die Here, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie – ondeurgrondelik is sy insig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie. “ Luister in stilte na My, eilande! Laat die volke nuwe krag kry; laat hulle na vore tree, dan kan hulle die woord voer. Laat ons saam nader kom vir die regsgeding. Wie het hom uit die ooste opgewek, hy op wie oorwinning wag met elke tree wat hy gee? Hy laat nasies voor hom verskyn, en konings onderwerp hy. Hy maak hulle soos stof met sy swaard, soos strooi wat wegwaai met sy boog. Hy agtervolg hulle, hy trek ongedeerd verby; hy raak nie met sy voet aan 'n pad nie. Wie het dit bewerk en uitgevoer, terwyl Hy van die begin af die geslagte roep? Ek, die Here, was die eerste, en by die laaste geslagte sal Ek steeds daar wees. “Die eilande het dit gesien en is bevrees, die eindes van die aarde beef. Hulle het nader gekom, hulle het aangekom; hulle help mekaar. Die een sê vir die ander, ‘Hou moed!’ Die vakman bemoedig die smid; die een wat met 'n hamer die uitklopwerk doen, bemoedig die een wat op 'n aambeeld slaan. Hy sê van die smeewerk, ‘Dit is goed!’ Hulle slaan die beeld met spykers vas, sodat dit nie omkantel nie. “ Maar jy, Israel, my dienskneg, Jakob, wat Ek uitgekies het, nakomeling van Abraham, my vriend, jy, die een wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde af, wat Ek van sy verste dele af geroep het, vir jou het Ek gesê, ‘Jy is my dienskneg!’ Ek het jou uitgekies, jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. Kyk, hulle sal beskaamd staan en verneder word – almal wat vir jou kwaad is. Hulle sal soos niks wees en tot niet gaan, daardie manne wat teen jou 'n regstryd voer. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, daardie manne wat teen jou stryd voer. Hulle sal soos niks, soos iets niksseggends wees, daardie manne wat teen jou oorlog voer. Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help.’ Moenie bang wees nie, wurm Jakob, mense van Israel, Ek is die Een wat jou help!” is die uitspraak van die Here. “Jou losser is die Heilige van Israel. Kyk, Ek maak jou 'n skerp nuwe dorsslee, een met dubbele rye tande. Jy sal berge dors en fynmaal, en heuwels sal jy soos kaf maak. Jy sal hulle uitwan; die wind sal hulle wegdra; 'n stormwind sal hulle uitmekaar waai. Maar jy sal juig oor die Here, oor die Heilige van Israel sal jy roem. “Die magteloses en behoeftiges soek water, maar daar is niks; hulle tonge verdroog van dors. Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, Ek sal hulle nie verlaat nie. Op kaal hoogtes laat Ek riviere ontspring, fonteine in die middel van valleie. Van 'n woestyn maak Ek 'n waterryke vleiland, van 'n dor land waterbronne. Ek laat in die woestyn seders, doringbome, mirtebome en wilde-olyfhoutbome opskiet; Ek plant in woestynvlaktes sipresse, en daarmee saam wildevlierbome en dennebome, sodat mense kan sien en erken, dit ter harte neem, en tegelykertyd begryp dat die hand van die Here dit gedoen het, dat die Heilige van Israel dit geskep het. “Lê julle regsaak voor,” sê die Here. “Bring julle bewyse!” sê die Koning van Jakob. “ Laat hulle dit bring en ons inlig oor wat gebeur: Die vroeëre gebeure – wat was dit? Lig ons in, sodat ons dit ter harte kan neem, sodat ons kan weet wat die afloop daarvan was; of, die komende gebeure – laat ons hoor wat dit sal wees! Lig ons in oor wat later kom, sodat ons kan weet dat julle gode is. Ja, doen iets goeds of slegs, sodat ons bevrees, ja, almal saam bang kan word. Kyk, julle is minder as niks, en julle dade is minder werd as iets waardeloos! Afstootlik is hy wat vir julle kies. “Ek het hom uit die noorde opgewek, en hy het gekom. Van waar die son opkom, sal hy my Naam aanroep. Hy vertrap landvoogde soos kleigrond, soos 'n pottebakker die klei trap. Wie het dit van die begin af aangekondig, sodat ons kon kennis neem, vantevore al, sodat ons kon sê, ‘Hy was reg!’? Daar is niemand wat dit aankondig nie, niemand wat iets laat hoor nie, ja, niemand wat julle woorde hoor nie. Ek was die eerste om aan Sion te sê, ‘Kyk, hier is hulle wat dit verkondig het!’ Aan Jerusalem gee Ek 'n boodskapper van vreugde. Ek kyk rond, maar daar is niemand nie; onder hulle is daar nie een wat kan raad gee nie. Ek vra hulle, maar hulle antwoord nie. Kyk, hulle almal is niks; hulle dade is niksseggend. Wind en leegheid is hulle gegote beelde. “ Kyk, hier is my dienskneg wat Ek ondersteun, my uitverkorene in wie my binneste vreugde vind. Ek het my Gees op hom laat kom; hy sal reg vir die nasies laat deurbreek. Hy sal nie om hulp roep en nie uitroep nie. Hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. 'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie; in getrouheid sal hy reg laat deurbreek. Hy sal nie weifel en nie geknak word nie, totdat hy reg op die aarde gevestig het; op sy lering wag die eilande. ” So sê die ware God, die Here, wat die hemel geskep en oopgespan het, wat die aarde uitgebrei het, en dit wat daaruit voortkom, wat asem gee aan die mense daarop, lewensasem aan wie daarop beweeg: “ Ek, die Here, het jou geroep met die oog op geregtigheid; Ek sal jou hand vasgryp, jou bewaar en jou bestem tot 'n verbond vir die volk, tot 'n lig vir die nasies – om blinde oë oop te maak, om gevangenes uit die kerker te lei, om hulle wat in donkerte sit, uit die tronk te lei. Ek is die Here, dit is my Naam. My heerlikheid sal Ek nie afstaan aan 'n ander nie, my roem nie aan gesnede beelde nie. Die dinge van vroeër – kyk, dit het gebeur; en die nuwe dinge – Ek kondig dit aan, voordat dit uitspruit, laat Ek julle daarvan hoor.” Sing vir die Here 'n nuwe lied, besing sy roem van die einde van die aarde af, julle wat die see bevaar, en alles wat in die see is, ook die eilande en hulle bewoners. Laat die woestyn en sy dorpe hulle stem verhef, die gehuggies waar Kedar woon. Laat die inwoners van Sela jubel, hardop roep van die bergkruine af. Laat hulle aan die Here eer gee, sy roem op die eilande bekend maak. Die Here, soos 'n held trek Hy uit, soos 'n krygsman wakker Hy die krygslus aan. Hy roep die strydkreet, ja, Hy skreeu die oorlogskreet uit; aan sy vyande betoon Hy Homself as die magtige. “Ek het lank stilgebly, My stil gehou, My bedwing. Soos 'n vrou wat geboorte gee, kreun Ek; Ek hyg en snak tegelyk na asem. Ek lê berge en heuwels droog, al die plantegroei daarop laat Ek verdor. Ek laat eilande in riviere ontstaan; Ek laat vleilande opdroog. Ek laat blindes gaan op 'n weg wat hulle nie ken nie; op paaie wat hulle nie ken nie, laat Ek hulle loop. Ek maak die duisternis voor hulle lig, die ongelyk plekke maak Ek gelyk. Dit is die beloftes – Ek voer dit uit, Ek laat dit nie na nie. Hulle sal terugdeins, en hulle sal grootliks beskaamd staan – dié wat op afgodsbeelde vertrou, wat vir gegote beelde sê, ‘Julle is ons gode!’ “ Dowes, luister! Blindes, kyk, sodat julle kan sien! Wie is blind, behalwe my dienskneg, en doof, soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die een wat vergelding ontvang het, en blind soos die dienskneg van die Here? Jy het baie dinge gesien, maar nie daaraan aandag gegee nie. Die ore is oop, maar hy luister nie.” Ter wille van sy geregtigheid, het die Here behae daarin om sy wet as groot en glorieryk te laat geld. Maar dié is 'n geplunderde en beroofde volk. Hulle is almal vasgekeer in gate, en in tronke word hulle weggesteek. Hulle het buit geword, en daar is niemand wat kan red nie; hulle is 'n beroofde volk, en niemand sê, “Gee terug!” nie. Wie onder julle gee hieraan aandag, slaan daarop ag en hoor dit met die oog op die toekoms? Wie het Jakob as buit oorgegee, en Israel aan die plunderaars? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Hulle wou nie op sy paaie loop nie, en het nie na sy wet geluister nie. Hy het sy brandende toorn en die geweld van oorlog oor hulle uitgestort. Dit het hulle aan alle kante geskroei, maar hulle het dit nie besef nie. Dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie. “Maar nou,” so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar. Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’ en vir die suide, ‘Moenie gevange hou nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. Elkeen wat na my Naam genoem is – tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ” Laat 'n volk wat blind is, en tog oë het, wat doof is, en tog ore het, na vore tree. Al die nasies is byeengebring, die volke het bymekaargekom. Wie onder hulle kan die saak stel, vir ons die dinge van vroeër verklaar? Hulle moet hulle getuies bring, sodat hulle gelyk gegee kan word. Die getuies moet luister, sodat hulle kan sê: “Dit is waar.” “ Julle is my getuies,” is die uitspraak van die Here, “my dienskneg wat Ek uitgekies het, sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is. Voor My is daar nie 'n god gevorm nie, en ná My sal daar nie een wees nie. Ek, ja, Ek is die Here, en daar is geen verlosser buiten My nie. Ek is die Een wat dit bekend gemaak het; Ek het verlos en dit aangekondig – Ek, nie 'n vreemde onder julle nie. En julle is my getuies,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek God is. Ook voortaan is Ek die Een; uit my hand kan niemand red nie. Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak? ” So sê die Here, julle losser, die Heilige van Israel: “Ter wille van julle stuur Ek iemand na Babel; Ek laat vlugtelinge ondergaan, almal van hulle, die Galdeërs, op die skepe waaroor hulle jubel. Ek is die Here, julle Heilige, die Skepper van Israel, julle Koning.” So sê die Here, wat in die see 'n pad maak, 'n deurgang in die magtige waters, wat strydwaens en perde laat opruk, 'n leërmag, ja, 'n magtige een – saam lê hulle daar, hulle staan nie op nie; hulle is geblus, soos 'n lamppit uitgedoof – “ Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek 'n pad maak, in die wildernis riviere. Die wilde diere sal My eer, die jakkalse en steenuile, omdat Ek water in die woestyn, ja, riviere in die wildernis gee, om my uitverkore volk te laat drink. Die volk wat Ek vir my gevorm het – my lof sal hulle verkondig. “ Dit is nie vir My wat jy aangeroep het nie, Jakob; trouens, jy het moeg geraak vir My, Israel. Jy het nie vir My die kleinvee van jou •brandoffers gebring nie; met jou slagoffers het jy My nie vereer nie. Ek het jou nie belas met •graanoffers nie, jou nie vermoei deur wierook te eis nie. Jy het nie vir My met geld kalmoes gekoop nie; met die vet van jou slagoffers het jy My nie verkwik nie. Nee, jy het My met jou sondes belas, My met jou sondeskuld vermoei. Ek, ja, Ek is die Een wat ter wille van Myself jou oortredings telkens uitgewis het, jou sondes nie in herinnering geroep het nie. Kla My aan! Laat ons saam die saak beslis. Stel jy jou saak, sodat jy gelyk gegee kan word. Jou eerste voorvader het gesondig; jou woordvoerders het teen My oortree. Toe het Ek die heilige •hoë amptenare ontwy. Ek het Jakob aan volledige vernietiging oorgegee, en Israel aan beledigings. “Maar luister nou, Jakob, my dienaar, Israel, wat Ek uitgekies het.” So sê die Here, wat jou gemaak, jou in die moederskoot al gevorm het, wat jou help: “Moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob, ja, Jesurun, wat Ek uitgekies het. Want Ek sal water uitgiet op dorre aarde, waterstrome op droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou nageslag, en my seën op jou nakomelinge. Hulle sal groei tussen gras, soos rivierwilgers langs waterstrome. Een sal sê, ‘Aan die Here behoort ek,’ en 'n ander een sal die naam van Jakob uitroep. Nog een sal op sy hand skryf, ‘Die Here s'n,’ en homself die naam Israel gee.” So sê die Here, die Koning van Israel, die Een wat hom loskoop, die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste. Buiten My is daar geen God nie. Wie is soos Ek? Laat hy dit uitroep! Hy moet die saak stel, dit aan My voorlê, aangesien Ek die oeroue volk gevestig het. Toekomstige gebeure en wat daarna sou volg, moes hulle vir die volk aangekondig het. Julle moet nie ontsteld wees nie, moenie deur vrees verlam word nie. Het Ek jou, Israel, dit nie vantevore laat hoor, dit aangekondig nie? Julle is my getuies: Is daar 'n God buiten My? Daar is nie nog 'n rots nie. Ek weet nie van een nie. “Dié wat gesnede beelde vorm, hulle almal is nietig. Hulle geliefde maaksels baat hulle niks nie. Hulle getuig self oor hulle gode, ‘Hulle sien niks nie en weet niks nie,’ sodat hulle beskaamd staan. Wie vorm 'n god, wie giet 'n afgodsbeeld wat hom niks baat nie? Kyk, al sy aanhangers staan beskaamd; en die vakmanne, hulle is bloot mense. Hulle kom almal byeen, neem hulle plekke in, raak vreesbevange, staan saam beskaamd. Die ystersmid slyp sy gereedskap, en werk met gloeiende kole. Met hamers vorm hy iets en bewerk dit met sy kragtige voorarm. Hy word selfs honger en is sonder krag; hy drink nie water nie en raak uitgeput. Die skrynwerker span 'n maatlyn; hy merk die buitelyne af met 'n griffel. Hy werk aan die hout met kerfmesse, merk in sirkels die buitelyne af. Hy maak dit in die vorm van 'n man, 'n pragstuk van 'n mens, om in 'n huis te woon. Dit was vir hom nodig om seders af te kap; hy het 'n kroonden of 'n eik geneem, hy het dit tussen die bome in die bos laat groei. Of hy het 'n sparboom geplant, en die reën het dit laat groei. Dit is daar vir 'n mens om vuur mee te maak; hy vat daarvan en maak hom warm. Hy kan vuur maak en brood bak daarmee, én 'n god maak en daarvoor buig in aanbidding. Hy maak daarvan 'n afgodsbeeld en kniel daarvoor neer. Die helfte daarvan verbrand hy in 'n vuur; op hierdie helfte is vleis wat hy kan eet; hy braai dit en word versadig. Hy maak hom ook warm en sê, ‘A! Ek word warm; ek sien die gloed van 'n vuur!’ En die res daarvan verwerk hy tot 'n god, tot sy afgodsbeeld. Hy kniel daarvoor neer, buig daarvoor in aanbidding, aanbid dit en sê, ‘Red my, want u is my god!’ “Hulle besef dit nie, hulle het nie insig nie; want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie kan sien nie, hulle harte, sodat hulle nie kan begryp nie. Hulle neem dit nie ter harte nie, en het nie die kennis of insig om te kan dink nie: Die helfte daarvan het ek in die vuur verbrand; ek het ook op die kole daarvan brood gebak en vleis gebraai en dit geëet. En wat daarvan oor is – tot iets afstootliks maak ek dit; voor 'n stuk hout kniel ek neer. “So iemand bemoei hom met as; sy hart is mislei en verlei hom. Hy kan homself nie losruk of vra, ‘Is dit nie dalk 'n stuk bedrog hier in my regterhand nie?’ “ Onthou die volgende, Jakob, ja, Israel, want jy is my dienskneg: Ek het jou gevorm, my dienskneg is jy. Israel, vir My is jy nie vergete nie. Ek het jou oortredings soos 'n newel, jou sondes soos 'n wolk weggevee. Keer terug na My, want Ek het jou losgekoop.” Jubel, hemel, want die Here het opgetree! Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in jubelkrete, berge, bosse en elke boom daarin; want die Here het Jakob losgekoop, in Israel sy heerlikheid getoon! So sê die Here, jou losser, Hy wat jou in die moederskoot al gevorm het: “Ek is die Here wat alles gemaak het, wat alleen die hemel oopspan, wat die aarde uitbrei – wie was by My? – wat die voortekens van orakelpriesters verydel, wat van voorspellers gekke maak, wat wyses laat terugdeins en hulle kennis belaglik maak, wat die woord van sy dienskneg bevestig, wat die plan van sy boodskappers uitvoer, die Een wat oor Jerusalem sê, ‘Sy sal bewoon word,’ en oor die dorpe van Juda, ‘Hulle sal herbou word, Ek sal sy puinhope weer oprig,’ die Een wat vir die diepsee sê, ‘Word droog! Jou seestrome gaan Ek drooglê,’ die Een wat oor Kores sê, ‘Hy is my herder; en alles wat Ek wil, sal hy uitvoer,’ deur oor Jerusalem te sê, ‘Sy sal herbou word,’ en die •tempel – ‘sy fondament sal gelê word.’ ” “ So sê die Here vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie, ‘Ek self sal voor jou uit gaan, die berge sal Ek gelyk maak. Deure van brons sal Ek stukkend breek, en sluitbalke van yster sal Ek stukkend kap. Ek gee aan jou skatte in die donker, rykdomme in verborge plekke, sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, is wat jou op jou naam roep, die God van Israel, ter wille van my dienskneg Jakob, en Israel, my uitverkorene. Ek roep jou op jou naam, Ek gee jou 'n erenaam, al het jy My nie geken nie. Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen god nie. Ek omgord jou, al het jy My nie geken nie, sodat hulle van waar die son opkom, en van waar hy ondergaan, kan weet dat daar niks is buiten My nie. Ek is die Here, en daar is geen ander nie – die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep. Ek, die Here, bewerk al hierdie dinge. “ ‘ Hemele daar bo, laat dit neerstuif, en laat die wolke geregtigheid neersif! Die aarde moet oopgaan; dit moet verlossing as vrug voortbring; geregtigheid moet daarmee saam uitspruit. Ek, die Here, het dit geskep. “ ‘ Wee hom wat 'n stryd aanknoop met die een wat hom gevorm het – hy is 'n potskerf tussen potskerwe op die grond! Vra die klei vir die een wat dit vorm: “Wat maak jy? Jou maaksel – dit het nie eers handvatsels nie!” Wee hom wat vir 'n vader sê: “Waarom verwek jy kinders?” of vir 'n vrou, “Waarom krimp jy ineen vir geboorte?” ’ ” So sê die Here, die Heilige van Israel, wat hom gevorm het: “Die dinge wat kom – vra My daaroor! Oor my kinders en my handewerk moet julle My mos opdragte gee! Dit is Ek wat die wêreld gemaak het, en die mense daarop het Ek geskep. Ek, ja, my hande het die hemelruim oopgespan, en aan al die hemelliggame het Ek opdragte gegee. Dit is Ek wat hom opgewek het, met die oog op geregtigheid. Al sy paaie sal Ek gelyk maak. Dit is hy wat my stad sal herbou en my ballinge sal vrylaat, sonder 'n koopprys, sonder omkoopgeld,” sê die Here, Heerser oor alle magte. So sê die Here: “Die produkte van Egipte, die handelswins van Kus, en die Sabeërs, daardie lang mense, sal na jou toe kom, aan jou sal dit behoort. Hulle sal agter jou aan loop, in kettings sal hulle aankom. Voor jou sal hulle diep neerbuig, by jou sal hulle biddend pleit, ‘Waarlik, by jou is God, en daar is geen ander nie, ja, geen ander God nie.’ ” Waarlik U is God, die Een wat Uself verberg, die God van Israel, die Verlosser. Hulle staan beskaamd, ja, hulle is almal saam verneder. Saam het die beeldemakers in vernedering weggegaan. Israel word verlos deur die Here – 'n verlossing vir alle tye. Hulle sal nie beskaamd staan nie, en nie verneder word nie – tot in alle ewigheid. Ja, so sê die Here wat die hemel geskep het – Hy is God – wat die aarde gevorm en dit gemaak het – Hy het dit gevestig – nie as 'n onherbergsame plek het Hy dit geskep nie, maar om bewoon te word, het Hy dit gevorm: “Ek is die Here, en daar is geen ander nie. Ek het gepraat – nie in die geheim nie, nie iewers in 'n donker land nie. Ek het nie vir die nageslag van Jakob gesê, ‘Soek My in 'n onherbergsame plek’ nie. Ek, die Here, verkondig geregtigheid; Ek kondig aan wat reg is. Kom byeen, ja, kom! Kom almal nader, julle van die nasies wat ontvlug het! Hulle weet niks nie, hulle wat hulle afgodsbeelde van hout dra, wat bid tot 'n god wat nie verlos nie. Stel die saak en bring die bewyse! Beraadslaag ook saam! Wie het hierdie saak lankal reeds bekend gestel, dit tevore al aangekondig? Is dit nie Ek, die Here, nie? Daar is geen ander God buiten My nie – 'n regverdige God, en Een wat verlos – geeneen behalwe Ek nie. “ Wend julle tot My, en word verlos, almal van die uithoeke van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. By Myself sweer Ek, uit my mond gaan 'n belofte oor geregtigheid, en dit sal nie herroep word nie: Voor My sal elke knie buig, elke tong sal plegtig verklaar, ‘Net by die Here, ’ sê hulle dan van My, ‘is daar kragtige dade van geregtigheid.’ ” Na Hom toe sal hulle kom en beskaamd staan, almal wat vir Hom kwaad is. Deur die Here sal die hele nageslag van Israel tot hulle reg kom, en in Hom roem. Bel het inmekaargesak, Nebo is vooroor gebuig. Hulle afgodsbeelde behoort aan die wilde diere en aan die vee. Julle draagbare gode is opgelaai – 'n las vir uitgeputte diere. Hulle staan vooroor gebuig, saam sak hulle inmekaar; hulle kan die vrag nie red nie. Hulle gaan self in ballingskap. “ Luister na My, huis van Jakob, die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat gedra is vanaf die baarmoeder, wat opgetel is van die moederskoot af. Tot in julle ouderdom is Ek daar; tot in julle gryse ouderdom is Ek die Een wat julle dra. Dit is Ek wat dit gedoen het: dit is Ek wat optel, dit is Ek wat dra en verlos. Met wie wil julle My vergelyk, en aan wie My gelykstel, wie beskou julle as My gelyke, dat ons dieselfde is? Hulle wat goud uit 'n geldsak skud en silwer met 'n weegskaal afweeg, hulle huur 'n goudsmid, en hy maak 'n god daarvan. Hulle kniel voor hom, hulle buig selfs in aanbidding; hulle tel hom op hulle skouers, hulle dra hom en plaas hom op sy plek – en daar staan hy! Van dié plek af kan hy nie beweeg nie. Selfs as iemand na hom om hulp roep, antwoord hy nie; uit benoudheid kan hy iemand nie verlos nie. “ Onthou dit, sodat julle standvastig kan wees. Neem dit ter harte, oortreders! Onthou die dinge van vroeër, van lank gelede; want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie – Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’ Ek wat uit die ooste 'n roofvoël roep, van 'n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer. “Luister na My, trotses van hart, julle wat ver is van geregtigheid. Ek het my geregtigheid nader gebring; dit is nie meer ver nie. Die verlossing wat Ek bring, sal nie talm nie. In Sion sal Ek verlossing skenk, aan Israel my heerlikheid.” “ Klim af, sit in die stof, maagdelike dogter van Babel! Sit op die grond, sonder 'n troon, dogter van die Galdeërs! Want hulle sal jou nie langer die saggeaarde en die fynbesnaarde noem nie. Neem 'n handmeul en maal koring! Haal jou sluier af, lig die lang kleed op, ontbloot jou dye, steek riviere oor! Jou naaktheid sal ontbloot word, en ook jou skande sal gesien word. Wraak gaan Ek neem; Ek sal geen mens tegemoetkom nie. ” Ons losser, die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam, die Heilige van Israel. “Sit in swye, gaan die duisternis binne, dogter van die Galdeërs! Want jy sal nie langer genoem word heerseres van koninkryke nie. Ek was toornig op my volk, Ek het my eiendom ontwy; Ek het hulle in jou hand oorgegee. Jy het nie aan hulle barmhartigheid bewys nie. Selfs op ou mense het jy jou juk baie swaar gemaak. Jy het gedink: Vir altyd sal ek daar wees, 'n heerseres vir ewig. Jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie; jy het nie aan die afloop daarvan gedink nie. Daarom, luister hierna, wellustige wat rustig woon, wat in haar hart sê: Ek is die een, en niemand anders nie; ek sal nie as 'n weduwee sit nie; ek sal nie kinderloosheid ervaar nie. Die volgende twee dinge kom oor jou, skielik, binne 'n enkele dag: kinderloosheid en weduweeskap. Die volle omvang daarvan sal jou tref ondanks jou oorvloed towerkunste, jou talle kragtige towerspreuke. Jy het op jou boosheid vertrou; jy het in jou hart gesê: Niemand sien my nie. Jou wysheid en jou kennis, dit is wat jou verlei het. Jy het in jou hart gesê: Ek is die een, en niemand anders nie! Onheil oorval jou, en jy ken nie beswering daarteen nie. 'n Ramp oorval jou, en jy kan dit nie afweer nie. Skielik oorval teenspoed jou, en jy het dit nie eers vermoed nie. Tree maar aan met jou towerspreuke, met jou oorvloed towerkunste waarmee jy jou van jou jeug af vermoei. Miskien kan jy daarby baat, miskien skrik jy mense af. Jy sloof jou af met jou baie planne. Laat hulle maar aantree en jou verlos – die sterrewiggelaars, die sterrekykers wat elke maand bekend maak wat jou gaan oorkom. Kyk, hulle het soos strooi geword, vuur verbrand hulle. Hulle kan hulleself nie red uit die greep van die vlamme nie – dit is nie gloeiende kole om hulle warm te maak nie, nie vuur om langs te sit nie. Só het almal vir jou geword, jou handelsvennote vir wie jy jou vermoei het van jou jeug af. Elkeen van hulle dwaal af, sy eie koers in; daar is niemand wat jou verlos nie.” Luister hierna, huis van Jakob, wat met die naam Israel genoem word, en uit die waters van Juda voortgekom het, wat in die Here se Naam 'n eed aflê en hulle op die God van Israel beroem, maar nie in waarheid en geregtigheid nie, al noem hulle hulleself na die heilige stad, en al steun hulle op die God van Israel – die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. “ Die vroeëre gebeure het Ek al lankal aangekondig – uit my mond het die berig gekom; Ek het dit bekend gemaak. Meteens het Ek opgetree, en dit het gebeur. Omdat Ek weet dat jy hardnekkig is, dat jou nek 'n ystersening is en jou voorkop brons, het Ek dit lankal vir jou aangekondig; voordat dit gebeur het, het Ek dit aan jou bekend gemaak. Anders sou jy sê, ‘My afgod het hierdie dinge gedoen, my afgodsbeeld en my gegote beelde het dit beveel.’ Jy het dit gehoor; aanskou dit dan nou alles! En julle, sal julle dit nie bekend maak nie? “Van nou af maak Ek aan jou nuwe dinge bekend, dinge wat verborge is, waarvan jy nie geweet het nie. Nou eers is dit geskep, nie tevore nie; voor vandag het jy nie daarvan gehoor nie, sodat jy nie sou sê, ‘Kyk, ek het dit geweet’ nie. Jy het dit nóg gehoor, nóg geweet. Vroeër is jou ore ook nie oopgemaak nie, want Ek het geweet dat jy beslis ontrou gaan wees. Oortreder van die moederskoot af word jy genoem. Ter wille van my Naam hou Ek my toorn terug, ter wille van die lof wat My toekom, bedwing Ek Myself – tot jou voordeel, en om jou nie uit te roei nie. Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie in 'n silwersmeltoond nie. Ek het jou getoets in die smeltkroes van ellende. Ter wille van Myself, ja, ter wille van Myself tree Ek op. Want hoe sou my Naam nie ontheilig word nie! En my heerlikheid – aan geen ander sal Ek dit gee nie. Luister na My, Jakob, Israel, my geroepene: Dit is Ek; Ek is die eerste, Ek is ook die laaste. Dit is ook my hand wat die aarde gegrondves het, my regterhand wat die hemel oopgespan het. Wanneer Ek na hulle roep, staan hulle saam gereed. “Kom byeen, julle almal, en luister! Wie onder hulle het hierdie dinge aangekondig? Hy vir wie die Here lief is, sal die Here se wil oor Babel voltrek; sy arm sal dit aan die Galdeërs doen. Ek, Ek het gepraat; Ek het hom ook geroep. Ek het hom laat kom, en sy pad sal voorspoedig wees. Kom nader na My toe! Luister hierna: Van die begin af het Ek nie in die geheim gepraat nie, vanaf die tyd dat dit gebeur het, is Ek daar.” En nou het my Heer, die Here, my gestuur, en ook sy Gees. So sê die Here, jou •losser, die Heilige van Israel: “Ek is die Here jou God, wat jou leer tot jou voordeel, wat jou lei op die pad wat jy moet loop. As jy maar net ag sou slaan op my gebooie, dan sou jou vrede soos 'n rivier wees, jou geregtigheid soos die golwe van die see; soos die sand sou jou nageslag wees, die nakomelinge uit jou liggaam soos korrels sand. Dan sou hulle nie uitgeroei word nie, en hulle naam sou nie uitgedelg word uit my teenwoordigheid nie. “Gaan uit Babel uit, vlug weg van die Galdeërs! Kondig dit met jubelkrete aan, laat hierdie boodskap hoor! Laat dit uitgaan tot by die einde van die aarde! Sê, ‘Die Here het sy dienaar Jakob losgekoop! Hulle het nie dors geword nie; deur droë streke het Hy hulle laat gaan. Water uit 'n rots het Hy vir hulle laat vloei. Hy het 'n rots gekloof, en water het uitgestroom.’ “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê die Here. Luister na my, eilande, gee aandag, afgeleë nasies! Die Here het my reeds geroep toe ek in die moederskoot was; Hy het reeds my naam genoem toe ek in my moeder se liggaam was. Hy het my mond soos 'n skerp swaard gemaak, in die skaduwee van sy hand het Hy my weggesteek. Hy het my 'n geslypte pyl gemaak, in sy pylkoker het Hy my versteek. Hy het vir my gesê: “Jy is my dienskneg, Israel, deur wie Ek my heerlikheid toon.” Ek het egter gedink: Tevergeefs het ek my moeg gemaak. Verniet, vrugteloos het ek my kragte ingespan. En tog, die beslissing oor my lê by die Here, my beloning is by my God. Maar nou, die Here het gepraat – Hy wat my in die moederskoot al gevorm het as 'n dienskneg vir Hom – sodat ek Jakob na Hom kan terugbring, sodat Israel vir Hom byeengebring kan word. In die oë van die Here word ek geëer; my God het my krag geword. Hy het gesê: “Dit is nie genoeg dat jy vir My 'n dienskneg is om die stamme van Jakob op te rig nie, om dié wat bewaar gebly het van Israel, te laat terugkeer nie. Ek gee jou as 'n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde. ” So sê die Here, die losser van Israel, sy Heilige, aan die sielsveragte, aan hom wat afstootlik is vir nasies, aan die dienaar van heersers: “Konings sal dit sien en opstaan, ja, vorste, en hulle sal diep neerbuig – ter wille van die Here, Hy wat getrou is, die Heilige van Israel, wat jou gekies het.” So sê die Here: “In 'n tyd van welwillendheid antwoord Ek jou; op die dag van verlossing help Ek jou. Ek sal jou beskerm, Ek gee jou as 'n verbond aan die volk om die land op te bou, om van verlate erfgrond weer 'n erfdeel te maak, om vir gevangenes te sê, ‘Gaan uit!’ en vir hulle wat in die donker is, ‘Kom te voorskyn!’ Langs die paaie sal hulle wei, op al die kaal hoogtes sal hulle weiding wees. Hulle sal nie honger of dors word nie, die dor woestynwind en son sal hulle nie tref nie. Ja, hulle ontfermer sal hulle lei, langs waterbronne sal Hy hulle begelei. “ Ek sal al my berge in 'n pad verander, en my grootpaaie sal opgevul wees. Kyk, hierdie mense kom van ver af; kyk, sommige kom uit die noorde en weste, en ander kom uit die gebied by Aswan. ” Jubel, hemel, en juig, aarde! Breek uit in jubelkrete, berge! Want die Here het sy volk getroos, Hom oor sy magteloses ontferm. “ Sion het gesê, ‘Die Here het my verlaat, my Heer het my vergeet.’ Kan 'n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie. Kyk, op twee handpalms het Ek jou ingegrif; jou stadsmure is steeds voor My. Jou kinders kom gou. Hulle wat jou afgebreek het, 'n puinhoop van jou gemaak het, hulle trek uit jou uit. Kyk oral rond en sien: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Here, “jy sal hulle almal dra soos juwele, soos 'n bruid sal jy hulle omhang. Oor jou puinhope, jou verwoeste plekke, jou vernielde land lê Ek 'n eed af: Jy gaan nou te klein wees vir al die inwoners; en hulle wat jou verslind het, sal ver weg wees. Die kinders waarvan jy beroof is, sal weer, terwyl jy dit hoor, sê, ‘Die plek is te beknop vir my, maak vir my ruimte, sodat ek hier kan woon!’ Jy sal in jou hart sê: Wie het hulle vir my in die wêreld gebring terwyl ek kinderloos en onvrugbaar was, 'n balling en 'n gevangene? Hierdie kinders – wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het alleen oorgebly; waar was hulle dan?” So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek sal na die nasies my hand ophef, na die volke my banier omhoog hou. Hulle sal jou seuns bring in die vou van die kleed, en jou dogters op die skouer dra. Konings sal jou voogde wees, en hulle prinsesse jou pleegmoeders. Gesig na die grond, sal hulle diep voor jou neerbuig; hulle sal selfs die stof van jou voete lek. Dan sal jy besef dat Ek die Here is. Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie. ” “Sal krygsgevangenes weggeneem word van 'n held, of gevangenes vrykom van 'n geweldenaar? ” Maar, so sê die Here: “Selfs gevangenes sal van 'n held weggeneem word, en krygsgevangenes sal vrykom van 'n geweldenaar. Teen hom wat met jou die stryd aanknoop, sal Ek self die stryd aanknoop, en jou kinders – Ek self sal hulle verlos. Ek sal hulle wat jou verdruk, hulle eie vlees laat eet. Hulle sal dronk word van hulle eie bloed, asof dit soetwyn is. Alle mense sal besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos, jou losser, die Magtige van Jakob.” So sê die Here: “Waar is julle moeder se skeibrief dan nou waarmee Ek haar weggestuur het? Of wie van my skuldeisers is daar aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, oor julle sondeskuld is julle verkoop, en oor julle oortredings is julle moeder weggestuur. Waarom het Ek gekom, en daar was niemand nie, het Ek geroep, en niemand het geantwoord nie? Was my hand werklik te kort om te red? Of was daar geen krag in My om uit te red nie? Kyk, deur my dreigende woord laat Ek die see opdroog – Ek maak van riviere 'n woestyn. Die visse daarvan stink weens 'n gebrek aan water – hulle sterf van dors. “Ek beklee die hemelruim met donkerte; Ek bedek dit met 'n roukleed. ” Dit is my Heer, die Here, wat aan my 'n vaardige tong gegee het, sodat ek kan weet hoe om vermoeides met 'n boodskap op te beur. Elke oggend maak Hy my wakker; Hy wek my oor om soos 'n leerling te luister. My Heer, die Here, het my ore oopgemaak, en ek, ja, ek was nie opstandig nie; teruggedeins het ek nie. My rug het ek gehou vir hulle wat slaan, en my wange vir hulle wat baard uitpluk. My gesig het Ek nie verberg vir beledigings en spuug nie. Dit is my Heer, die Here, wat my te hulp kom; daarom voel ek nie verneder nie; daarom het ek my gesig soos vuurklip gemaak. Ek het geweet dat ek nie beskaamd sou staan nie. Hy wat my reg handhaaf, is naby. Wie sal teen my 'n regstryd voer? Laat ons saam plek inneem! Wie is die teenstander in my saak? Laat hy nader kom! Kyk, my Heer, die Here, kom my te hulp. Wie is dit wat my skuldig sal verklaar? Kyk, hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, motte sal hulle wegvreet. Wie is daar onder julle wat ontsag het vir die Here, wat luister na die stem van sy dienskneg? Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die Here vertrou, moet op sy God steun. Kyk, julle almal wat vure aansteek, wat julle met brandpyle bewapen, loop dan in die gloed van julle vuur, ja, tussen die brandpyle wat julle aangesteek het! Deur my hand het dit met julle gebeur; in 'n plek van pyniging sal julle lê. “Luister na My, julle wat geregtigheid nastreef, julle wat die Here soek! Kyk na die rots waaruit julle gekap is, na die steengroef waaruit julle gegrawe is. Kyk na Abraham, julle vader, en na Sara, wat julle met pyn in die wêreld gebring het. Ja, as een persoon het Ek hom geroep, maar Ek het hom geseën en hom talryk gemaak.” Ja, die Here het Sion getroos, Hy het al haar puinhope getroos. Hy het haar woestyn soos Eden gemaak, haar Araba soos die tuin van die Here. Vreugde en blydskap word in haar gevind, dankliedere en die klank van begeleiding. “ Luister mooi na My, my volk, my nasie, hoor My aan! Want onderrig sal van My uitgaan, en my beslissing sal 'n lig vir die volke wees. Binnekort bring Ek my geregtigheid nader. My verlossing is op pad; my arms sal reg verskaf aan die volke. Op My wag die eilande, op my arm is hulle hoop gevestig. Kyk op na die hemel, bekyk die aarde daaronder, want die hemel – soos rook sal dit uitmekaar dryf, en die aarde – soos 'n kleed sal dit verslyt. Wie daarop woon – soos muggies sal hulle sterf. My verlossing duur vir altyd, en my geregtigheid sal nie verbreek word nie. Luister na My, julle wat geregtigheid ken – volk met my wet in hulle harte! Moenie bang wees vir die bespotting deur mense nie; vir hulle beledigings moet julle nie skrik nie. Want soos 'n kleed sal motte hulle wegvreet; soos wol sal kleremotte hulle wegvreet. My geregtigheid sal vir altyd duur, my verlossing van geslag tot geslag.” Word wakker, word wakker, beklee U met krag, arm van die Here! Word wakker, soos in die verre verlede, in die tyd van vergange geslagte! Is dit nie U wat Rahab aan stukke gekap het, die seemonster deurboor het nie? Is dit nie U wat die see drooggelê het, die water van die groot oervloed, wat in die dieptes van die see 'n pad gemaak het, sodat dié wat losgekoop is, kon deurtrek nie? Wie deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete; met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig; verdriet en gesug sal wegvlug. “Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos. Wie is jy dan dat jy bang is vir gewone mense wat sal sterf, vir mensekinders wat bestem is om soos gras te sterf, dat jy die Here wat jou gemaak het, vergeet – Hy wat die hemel oopgespan en die aarde gegrondves het – dat jy voortdurend, daglank, bewe vir die woede van die verdrukker wanneer hy daarop uit is om te verwoes? Waar is die woede van die verdrukker? Wie in boeie vooroor geboë sit, sal binnekort losgelaat word; hy sal nie sterf nie, nie na die grafkuil gaan nie; aan brood sal dit hom nie ontbreek nie. Want Ek is die Here jou God, wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun.” Die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. “Ek gee my woorde in jou mond; met die skadu van my hand bedek Ek jou, om so die hemel oop te span en die aarde te grondves, en om vir Sion te sê, ‘Jy is my volk.’ ” Skud jouself wakker! Skud jouself wakker! Staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy woede gedrink het! Die beker wat 'n mens laat steier, het jy gedrink, leeg geslurp. Daar is niemand wat haar lei nie, nie een van al die kinders waaraan sy geboorte gegee het nie. Daar is niemand wat haar hand vashou nie, nie een van al die kinders wat sy grootgemaak het nie. Hierdie dubbele rampe het jou getref – wie sal jou jammer kry? – verwoesting en ineenstorting, hongersnood en swaard. Wie sal jou troos? Jou kinders – hulle is in 'n beswyming, hulle lê op die hoek van elke straat, soos 'n gemsbok in 'n vangnet. Hulle het oorgenoeg gehad van die Here se woede, van die dreiging van jou God. Daarom, luister tog hierna, magtelose, jy wat dronk is, maar nie van wyn nie. So sê jou Heer, die Here, jou God, wat sy volk se saak behartig: “Kyk, Ek het die beker wat 'n mens laat steier uit jou hand geneem, die beker van my woede. Jy sal dit nie nog 'n keer hoef te drink nie. Ek sal dit plaas in die hand van hulle wat jou geteister het, hulle wat oor jou lewe gesê het, ‘Lê plat, sodat ons oor jou kan loop!’ Jy het jou rug gehou asof dit grond is, asof dit 'n straat is vir hulle wat verbygaan.” Word wakker! Word wakker! Beklee jou met jou krag, Sion! Trek jou pragtige klere aan, Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal onbesnedenes en onreines nie langer kom nie. Skud die stof van jou af! Staan op, gaan sit op jou troon, Jerusalem! Maak jou los van die bande om jou nek, krygsgevangene, dogter van Sion! Ja, so sê die Here: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.” Ja, so sê my Heer, die Here: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk. Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die Here. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die Here, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis. Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ” Hoe lieflik op die berge is die voete van 'n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat 'n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” Luister na jou wagte, hulle roep uit, saam jubel hulle; want reg voor hulle oë aanskou hulle die terugkeer van die Here na Sion. Breek saam uit in gejubel, puinhope van Jerusalem! Want die Here troos sy volk, Hy koop Jerusalem los. Die Here ontbloot sy heilige arm voor die oë van al die nasies. Al die uithoeke van die aarde ervaar die verlossing deur ons God. Wyk uit! Wyk uit! Trek weg van daar af! Aan iets onreins moet julle nie raak nie. Trek weg uit haar midde! Hou julle rein, draers van die Here se tempelgereedskap! Julle mag egter nie oorhaastig wegtrek nie, nie op die vlug slaan nie; want die Here gaan voor julle uit; die God van Israel vorm julle agterhoede. “ Kyk, my dienskneg sal suksesvol wees, hy sal uitstyg, uittroon, en baie verhewe wees. Soos baie ontsteld was oor hom – so onmenslik misvormd was sy voorkoms, sy gestalte nie meer dié van 'n mens nie – net so sal hy baie nasies verbyster; konings sal oor hom swyg. Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien; en wie nie gehoor het nie, begryp. ” Wie het geglo wat ons gehoor het? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? Hy het soos 'n jong loot voor Hom opgegroei, soos 'n wortelstok uit droë grond. Hy het nie 'n gestalte gehad, geen glans, dat ons na hom sou kyk nie, nie 'n goeie voorkoms, dat ons hom sou begeer nie. Hy is verag, deur mense verlaat, 'n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie 'n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos 'n skaap wat ter slagting gebring word, soos 'n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Ná onderdrukking en 'n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref. Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by 'n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. Maar die Here het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as 'n skuldoffer, sal hy 'n nageslag sien en lank leef. Wat die Here wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis. “My dienskneg sal hom as 'n regverdige betoon aan baie, en hulle sondeskuld – hy sal dit op hom laai. Daarom sal Ek aan hom 'n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree. “Jubel, onvrugbare vrou, wat nie geboorte geskenk het nie! Breek uit in jubelkrete, roep uit van blydskap, jy wat nie geboortepyne gehad het nie! Want die kinders van die eensame vrou sal meer wees as die kinders van die getroude vrou,” het die Here gesê. Maak die plek vir jou tent groter, en die tentdoeke van jou wonings – laat dit oopgespan word; moet dit nie beperk nie! Maak jou tenttoue lank en jou tentpenne stewig! Want na regs en na links sal jy uitbrei; jou nageslag sal nasies in besit neem, verwoeste dorpe sal hulle bewoon. Moenie bang wees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; moenie verneder voel nie, want jy sal nie verleë wees nie. Ja, die skande van jou jeug sal jy vergeet, en aan die gespot oor jou weduweeskap sal jy nie weer dink nie. Want Hy wat met jou trou, is jou Maker; die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Hy wat jou loskoop, is die Heilige van Israel. God van die hele wêreld word Hy genoem. Ja, as 'n verstote, sielsongelukkige vrou, het die Here jou geroep. “Die vrou van 'n mens se jeug, sal sy verwerp word?” vra jou God. “Vir 'n kort oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferming sal Ek jou versamel. In 'n opwelling van grimmigheid het Ek my gesig 'n oomblik lank vir jou verberg; maar in ewige troue liefde ontferm Ek My oor jou,” het jou losser, die Here, gesê. “Soos in die dae van Noag is hierdie tyd vir My: Ek het 'n eed afgelê dat die water van Noag nie weer die aarde sal oorstroom nie. Net so het Ek 'n eed afgelê om nie weer toornig te wees op jou en jou te dreig nie. Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie, ” het jou ontfermer, die Here, gesê. “ Magtelose, stormgeteisterde stad, wat nie getroos is nie – kyk, Ek gaan jou bouklip in blink klei lê, jou fondament met •lasuurstene bou. Ek sal jou borswerings van •chalcedoon maak, en jou poorte sal van •berilsteen wees. Jou hele grensmuur sal van kosbare edelstene wees. Al jou kinders sal leerlinge van die Here wees, en groot sal die voorspoed van jou kinders wees. Deur geregtigheid sal jy jouself stewig vestig. “Besef dat jy ver is van verdrukking – ja, jy hoef nie te vrees nie; en ver van verskrikking – ja, dit sal nie naby jou kom nie. Kyk, as iemand jou wel aanval – dit kom nie van My af nie. Wie ook al jou aanval, sal oor jou tot 'n val kom. Kyk, Ek self het die smid geskep wat die gloeiende kole aanblaas en wapens lewer vir 'n bepaalde taak. Ek self het die verwoester geskep om verwoesting aan te rig. Geen wapen wat teen jou gemaak word, sal suksesvol wees nie. Elke tong wat teen jou getuig in 'n regsgeding, sal jy skuldig verklaar. “Dit is die erfdeel van die Here se diensknegte; dit is hulle geregtigheid van my kant,” is die uitspraak van die Here. “ Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig. Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef! Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid. Kyk, 'n getuie vir die volke het Ek hom gemaak, 'n leier, iemand wat bevel voer oor volke. Kyk, jy sal 'n nasie roep wat jy nie ken nie; en 'n nasie wat jou nie ken nie, sal na jou toe hardloop, ter wille van die Here, jou God, ter wille van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.” Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik. “Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here. “ Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne. Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit, en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet, net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. “ Ja, met vreugde sal julle wegtrek, en in vrede gelei word. Die berge en heuwels sal voor julle in jubelkrete uitbreek, en al die bome van die veld sal hande klap. In die plek van doringstruike sal sipresse groei; in die plek van distels sal mirtebome opkom. Dit sal vir die Here tot roem wees; as 'n ewige teken, sal dit nie afgekap word nie.” So sê die Here: “Handhaaf die reg en tree billik op, want my verlossing is naby, dit kom; en my geregtigheid is op hande, dit word geopenbaar. Gelukkig is die mens wat dit doen, die mensekind wat daarby hou, hy wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, wat sy hand daarvan weerhou om enigiets verkeerds te doen. Die nakomeling van 'n vreemde wat hom aan die Here verbind het, mag nie sê, ‘Die Here sal my beslis van sy volk afskei’ nie. 'n Eunug moet nie sê, ‘Kyk, ek is 'n droë boom’ nie. Want so sê Ek, die Here, vir die eunugs, vir dié wat wel my Sabbatte onderhou, wat dit kies waarin Ek vreugde vind, en wat vashou aan my verbond: Ek sal vir hulle iets gee wat beter is as seuns en dogters: In my •tempel en teen my mure sal Ek hulle gedenk met 'n teken en 'n naam. 'n Ewige naam sal Ek aan hulle gee wat nie uitgewis sal word nie. “En die nakomelinge van 'n vreemde wat hulle aan die Here verbind het om Hom te dien, om die Naam van die Here lief te hê en om sy dienaars te word – almal wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, en wat vashou aan my verbond – hulle sal Ek na my heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in my huis van gebed. Hulle •brandoffers en •maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar. Ja, my huis sal genoem word 'n huis van gebed vir al die volke. ” Die uitspraak van my Heer, die Here, Hy wat die verstrooides van Israel byeenbring, is: “Ek sal by Israel nog meer byeenbring as wat reeds by hom byeengebring is.” Al julle wilde diere van die veld, kom om te verslind! Ja, kom, al julle wild in die bos! Israel se wagte is almal blind, hulle neem niks waar nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê daar en maak geluide, hou daarvan om te sluimer. Die honde is vraatsugtig, hulle ken nie versadiging nie. Hulle is die herders! Hulle kan nie verstaan nie. Hulle is almal gerig op hulle eie pad, elkeen op sy eie voordeel, sonder uitsondering. “Kom!” sê een, “ek sal wyn gaan haal; kom ons word dronk van sterk drank! Die dag van môre sal net soos hierdie een wees – 'n buitengewone groot dag. “Die regverdige gaan ten gronde, maar niemand neem dit ter harte nie. Getroue mense sterf, en daar is niemand wat insien dat dit as gevolg van onheil is dat die regverdige sterf nie – hy gaan die vrede binne. Hulle sal op hulle beddens rus, elkeen van hulle wat sy reguit pad loop. “Maar julle, kom nader hierheen, nakomelinge van haar wat voortekens lees, nageslag van haar wat egbreuk pleeg en gehoereer het! Met wie vermaak julle julleself? Oor wie het julle julle monde vol? Vir wie steek julle tong uit? Is julle nie 'n klomp oortreders, 'n geslag leuenaars nie – julle wat brand van begeerte by die terebintbome, onder elke skaduryke boom, wat kinders slag in die spruite, onder oorhangende rotse? By die gladde klippe in die spruit lê jou lotsbestemming; hulle, ja, hulle bepaal mos jou lot! Ook vir hulle giet jy •drankoffers uit, laat jy •graanoffers in rook opstyg. Sou Ek sulke mense jammer kry? Op 'n hoë, verhewe berg het jy jou bed geplaas, selfs daarheen opgeklim om •maaltydoffers te bring. Agter die deur en kosyn het jy jou simbole aangebring. Ja, van My af het jy weggegaan en opgeklim; jy het jou lêplek breed gemaak, en jouself gesny as jy sonder afgode was. Jy was lief vir hulle bed, na naaktheid het jy gestaar. Jy het voor die koning gebuig met olie; jy het baie geurige salf aangebied. Jy het jou boodskappers na ver plekke gestuur, hulle laat afdaal tot in die •doderyk. Van jou baie reise het jy moeg geword, maar jy het nie gesê, ‘Dit is tevergeefs’ nie. Lewenskrag het jy gevind; daarom het jy nie swak geword nie. “Vir wie was jy bevrees en het jy ontsag gekoester, dat jy telkens lieg, en nie aan My gedink het nie, My nie ernstig opgeneem het nie? Is dit omdat Ek stilgebly het, en dit vir 'n lang tyd? Vir My het jy nie ontsag gehad nie. Ek self gaan getuienis aflê oor jou geregtigheid. En jou dade – dit sal vir jou van geen nut wees nie. Wanneer jy om hulp roep, moet jou klomp afgode jou maar red! Hulle almal – die wind sal hulle oplig, 'n luggie sal hulle wegwaai. Maar wie by My skuil, sal die land as erfdeel ontvang en my heilige berg in besit neem. ” Hy sal sê: “Vul die holtes op, vul dit op! Maak 'n pad gereed! Verwyder struikelblokke uit die pad van my volk!” Ja, so sê Hy wat hoog en verhewe is, wat vir ewig woon, wie se Naam die Heilige is: “In die hoogte, in 'n heilige plek, woon Ek, en ook by hulle wat verpletter en nederig is, om die gees van nederiges te laat herleef, om die hart van verpletterdes te laat herleef. Want Ek sal nie vir altyd 'n regstryd voer, en nie vir ewig toornig wees nie. Want menslike geeste sal voor My wegkwyn, ook die lewensasems wat Ek self gemaak het. “ Oor die sondeskuld as gevolg van sy gierigheid het Ek toornig geword en hom geslaan, het Ek My verberg terwyl Ek toornig was. Maar hy het afvallig geword, die pad van sy hart geloop. Sy paaie het Ek gesien, maar Ek sal hom genees. Ek sal hom lei en hom met vertroosting vergoed. En vir hulle wat oor hom treur, gee Ek 'n loflied op die lippe. “Vrede, vrede, vir dié wat naby is en vir dié wat ver is,” sê die Here, “Ek sal hulle genees.” Die goddeloses is soos die onstuimige see. Ja, dit kan nie rustig wees nie, en sy waters spoel vullis en modder uit. “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God. “Roep hard uit! Moenie terughou nie! Verhef jou stem soos 'n •ramshoring! Maak aan my volk hulle oortredings bekend, aan die huis van Jakob hulle sonde! Vir My raadpleeg hulle dag ná dag; kennis van My weë begeer hulle. Soos 'n nasie wat geregtigheid uitleef en nie afwyk van sy God se beslissings nie, vra hulle My oor regverdige beslissings; die nabyheid van God begeer hulle. ‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie raak nie, verootmoedig ons ons, maar U merk dit nie op nie?’ Kyk, op julle vasdag kry julle kans vir besigheid, en jaag julle al julle werknemers aan. Kyk, net om te twis en rusie te maak, vas julle, en om genadeloos met die vuis te slaan. Julle vas nie vandag om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is die vas wat Ek verkies dan so, 'n dag van verootmoediging vir 'n mens? Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit 'n dag wat die Here se goedkeuring wegdra? Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek? Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.” Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die Here sal jou agterhoede dek. Dan sal jy roep en die Here sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat, as jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees. Die Here sal jou voortdurend lei; in dor plekke sal Hy jou keel verkwik, jou gebeente sal Hy sterk maak. Jy sal soos 'n natgeleide tuin wees, soos 'n waterbron waarvan die water nie teleurstel nie. Sommige uit jou sal die oeroue puinhope herbou, die fondamente van geslagte gelede sal jy weer oprig. Jy sal genoem word: die een wat bresse toebou, die een wat paaie herstel, sodat mense daar kan woon. As jy jou voet terughou van die Sabbat, jou daarvan weerhou om te doen wat jy wil op my heilige dag, en die Sabbat 'n vreugde noem, eerbied toon vir dit wat heilig is vir die Here, die dag eer deur nie te doen wat jy gewoonlik doen nie, deur nie geleentheid te vind om jou besigheid te doen en 'n saketransaksie te bespreek nie, dan sal jy jou vreugde vind by die Here. “Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde. Ek sal jou die erfenis van jou vader Jakob laat geniet.” Ja, die mond van die Here het gespreek. Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te verlos nie, sy oor is nie hardhorend, sodat Hy nie kan hoor nie. Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie; want julle handpalms is deur bloed besoedel, en julle vingers deur sondeskuld. Julle lippe praat leuens, julle tonge prewel ongeregtigheid. Niemand beroep hom op geregtigheid nie, en niemand bepleit sy saak met die waarheid nie. Hulle vertrou op nietighede, en maak valse uitsprake. Hulle raak swanger van moeilikheid, en gee geboorte aan onheil. Hulle broei die eiers van kobras uit, en weef spinnerakke. Wie van daardie eiers eet, sterf; en as dit stukkend gedruk word, peul daar adders uit. Hulle spinnerakdrade deug nie vir klere nie – met hulle handewerk kan mense hulleself nie bedek nie. Hulle handewerk is onheilswerk – dade van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop na die kwaad; hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet. Hulle planne is planne van onheil; daar is verwoesting en vernietiging op hulle hoofpaaie. Die pad van vrede ken hulle nie. Daar is geen regverdige optrede op hulle roetes nie. Hulle maak self hulle paaie vol kinkels; niemand wat daarop loop, ervaar vrede nie. Daarom is regverdigheid ver van ons, geregtigheid bereik ons nie. Ons wag op die lig, maar kyk, daar is duisternis – op 'n ligskynsel, maar ons dwaal in die donker. Ons tas soos blindes aan 'n muur, asof sonder oë tas ons rond. Ons slaan helder oordag neer, asof dit skemeraand is; ons slaan tussen gesondes neer, asof ons dooies is. Soos bere grom ons almal, soos duiwe kla ons aanhoudend. Ons wag op regverdigheid, maar daar is niks nie – op verlossing, maar dit bly ver van ons. Want ons oortredings voor U is baie, ons sonde getuig teen ons. Ja, ons oortredings is met ons, en ons sondeskuld – ons ken dit: Ons oortree teenoor, en verloën die Here; ons draai weg van ons God af deur te praat oor afpersing en wat vals is. Ons het swanger geraak van leuentaal, en prewel dit uit die hart. So is regverdigheid teruggedwing, en bly geregtigheid ver weg staan. Ja, op die dorpsplein struikel die waarheid, en openhartigheid kan nie daar kom nie. So gebeur dit dat trou ontbreek. Wie afwyk van die kwaad, word beroof. Die Here sien dit, en dit is verkeerd in sy oë dat daar geen regverdigheid is nie. Hy het gesien dat daar niemand is nie, en was verbaas dat niemand tussenbeide tree nie. Sy voorarm het Hom bygestaan, en sy geregtigheid, dit het Hom ondersteun. Hy het geregtigheid aangetrek as 'n harnas, met die helm van verlossing op sy hoof. Hy trek klere van wraak as sy uitrusting aan; Hy draai Hom toe in ywer soos in 'n mantel. Volgens verdienste vergeld Hy: woede vir sy teenstanders, en wat hulle verdien, vir sy vyande. Die eilande vergeld Hy volgens verdienste. In die weste sal hulle ontsag hê vir die Naam van die Here, in die ooste vir sy heerlikheid. Want Hy sal kom soos 'n rivier in 'n vernouing, wat deur die wind van die Here voortgedryf word. “'n Losser sal na Sion kom; Hy sal na dié in Jakob kom wat hulle bekeer van oortredings,” is die uitspraak van die Here. “Wat My betref, dit is my verbond met hulle,” sê die Here: “My Gees wat op jou rus en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal nie uit jou mond wyk, of uit die mond van jou nageslag, of uit die mond van jou nageslag se nageslagte nie, van nou af en vir altyd,” sê die Here. “Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here skyn oor jou. Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die Here, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af kom hulle aan; en jou dogters – op die heup word hulle gedra. Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. 'n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die Here se lofwaardige dade sal hulle verkondig. Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik. “Wie is dit daardie wat soos 'n wolk aangesweef kom, soos duiwe na hulle neste? Ja, op My wag die eilande; die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt om jou kinders van ver af te bring. Hulle silwer en goud is by hulle, ter ere van die Naam van die Here, jou God, ter ere van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. “Vreemdes sal jou mure herbou, en hulle konings sal tot jou diens wees. Ja, in my grimmigheid het Ek jou geslaan, maar in my guns ontferm Ek My oor jou. Jou poorte sal altyd oopstaan; bedags en snags sal dit nie gesluit word nie, sodat mense die rykdom van nasies na jou toe kan bring, met hulle konings wat in 'n segetog gelei word. Ja, die nasie en die koninkryk wat jou nie dien nie, sal ondergaan; sulke nasies sal volledig verwoes word. Die luister van die Libanon sal na jou kom – sipresse, wildevliere en dennebome, almal tegelyk – om my heilige plek te versier. Aan die rusplek van my voete sal Ek eer gee. Na jou sal hulle neergeboë kom – die kinders van jou verdrukkers; almal wat jou verag het, sal diep neerbuig by jou voetsole. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel. In plaas daarvan dat jy verlate en gehaat is, sonder enige verbygangers, sal Ek jou 'n voorwerp van ewige trots maak, 'n vreugde van geslag tot geslag. Jy sal die nasies se melk drink, aan koninklike borste sal jy drink. Dan sal jy besef dat Ek die Here is wat jou verlos, jou losser, die Magtige van Jakob. In plaas van koper bring Ek goud, en in plaas van yster bring Ek silwer, in plaas van hout, koper, en in plaas van klippe, yster. Ek stel vrede aan as jou toesighouer, geregtigheid as jou regeerder. Daar sal nie langer iets oor geweld in jou land gehoor word nie, of oor verwoesting en vernietiging binne jou grense nie. Jy sal jou mure Verlossing noem, en jou poorte Lof. Vir jou sal die son nie meer daar wees as 'n lig bedags nie, en die maan sal nie as 'n helder lig vir jou skyn nie. Die Here sal as 'n ewige lig daar wees, en jou God as jou roem. Jou son sal nie weer ondergaan nie, en jou maan sal nie verdof nie; want die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, en jou routyd sal verby wees. Jou volk is almal regverdiges; vir altyd sal hulle die land besit, hulle, die werk van my hande, die loot wat Ek geplant het om My te verheerlik. Die kleinste sal 'n stam word, en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die Here, sal dit op die regte tyd vinnig laat gebeur.” Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om 'n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos, om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle •tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van 'n verslae gees. Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik. Hulle sal die oeroue puinhope herbou, die verwoeste plekke van vroeër weer oprig, dorpe wat in puin lê, wat geslagte lank verwoes is, sal hulle nuut maak. Vreemdes sal in julle diens wees en julle kleinvee laat wei, buitelanders sal julle plaaswerkers en julle wynbouers wees. Maar julle, priesters van die Here sal julle genoem word. As dienaars van ons God sal daar na julle verwys word. Die rykdom van nasies sal julle geniet, en met hulle luister sal julle spog. In plaas van julle skande word julle dubbeld vergoed. Ja, in plaas van vernedering sal hulle jubel oor hulle deel; daarom sal hulle 'n dubbele deel in hulle land in besit neem. Daar sal vir hulle ewige vreugde wees. “ Ja, Ek, die Here, het regverdigheid lief; Ek haat roof, veral saam met onreg. “Ek sal hulle beloning aan hulle gee op grond van my trou; 'n ewige verbond sal Ek met hulle sluit. Hulle nageslag sal bekend wees onder die nasies, hulle nakomelinge onder die volke. Almal wat hulle sien, sal hulle herken – dat hulle die geslag is wat deur die Here geseën is. ” Ek verheug my grootliks in die Here; my hele wese juig oor my God. Want Hy het vir my klere van verlossing aangetrek, 'n mantel van geregtigheid het Hy my omgehang, asof ek 'n bruidegom is, soos 'n priester met 'n tulband, soos 'n bruid met haar versierings. Ja, soos die grond sy plante voortbring en 'n tuin sy saailinge laat uitspruit, so sal my Heer, die Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor al die nasies. Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem nie rus nie, totdat haar geregtigheid deurbreek soos 'n helder lig, haar verlossing brand soos 'n fakkel. Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal 'n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal. Jy sal 'n sierlike erekroon wees in die hand van die Here, 'n kosbare koninklike hoofband in die handpalm van jou God. Mense sal nie meer vir jou sê “Verlatene” nie, en vir jou land nie meer sê “Woesteny” nie; maar jy sal genoem word “My Vreugde is in Haar”, en jou land “Getroude”. Want die Here vind vreugde in jou, en jou land sal getroud wees; ja, soos 'n jong man trou met 'n jong meisie, sal jou kinders met jou trou. Met die vreugde van 'n bruidegom oor sy bruid, sal jou God Hom oor jou verheug. Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie 'n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem 'n loflied op aarde gemaak het! Die Here het 'n eed afgelê by sy regterhand, by sy kragtige voorarm: “Ek sal nie meer jou koring as voedsel aan jou vyande gee nie, en vreemdes sal nie meer jou •nuwe wyn drink waarvoor jy jou vermoei het nie. Maar wie insamel, sal eet, en hulle sal die Here loof. Wie druiwe oes, sal die nuwe wyn drink in my heilige voorhowe.” Gaan deur, gaan deur die poorte, maak die pad vir die volk gereed. Vul op, vul die grootpad op! Vul dit op! Verwyder die klippe! Hou 'n banier omhoog vir die volke. Kyk, die Here laat dit hoor tot by die einde van die aarde: “Sê vir die dogter van Sion, ‘Kyk, jou verlossing kom! Kyk, sy vergoeding is by Hom, sy beloning is voor Hom. ’ ” Hulle sal genoem word Heilige Volk, Losgekooptes van die Here. ” En jy, Jerusalem, sal genoem word Gesogte, Stad wat nie Verlate is nie.” Wie is dit wat daar uit Edom kom, met helderrooi klere uit Bosra, Hy wat 'n glansryke bokleed dra, wat keldermeester is in die volheid van sy krag? “Ek is die Een wat in geregtigheid spreek – magtig om te verlos.” Waarom is u bokleed rooi, waarom is u klere soos dié van iemand wat druiwe trap in die wynpers? “ Die kuip het Ek alleen getrap; van al die volke was daar niemand by My nie. In my toorn het Ek hulle aanhou trap, hulle fyngetrap in my woede. Hulle lewensbloed het op my klere gespat; my hele uitrusting het Ek besoedel. Want Ek het 'n dag van wraak in gedagte gehad; die jaar van my bloedwraak het aangebreek. Ek het rondgekyk, maar daar was geen helper nie. Ek was verslae – daar was niemand wat ondersteuning bied nie. My voorarm het My tot hulp gekom, my woede, dit het My ondersteun. Ek het volke vertrap in my toorn, hulle dronk gemaak in my woede. Ek het hulle lewensbloed op die grond laat uitloop.” Die troue liefde van die Here sal ek vermeld, die lofwaardige dade van die Here, in ooreenstemming met alles wat die Here aan ons bewys het – die oorvloedige guns vir die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het in sy ontferming en oorvloedige troue liefde. Hy het gesê: “My volk is hulle beslis, kinders wat nie bedrieglik sal optree nie.” So het Hy vir hulle 'n verlosser geword. In al hulle nood was ook Hy in die nood. Die Engel van sy teenwoordigheid het hulle verlos. In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare, van lank gelede af. Maar hulle, hulle was opstandig en het sy Heilige Gees bedroef. Hy het teenoor hulle in 'n vyand verander; Hy self het teen hulle geveg. Toe het hulle gedink aan die jare van lank gelede, aan Moses en sy volk: “Waar is Hy wat hulle uit die see laat opkom het, saam met die herders van sy kleinvee? Waar is Hy wat in hulle midde sy Heilige Gees geplaas het, wat sy roemryke arm aan Moses se regterkant laat optrek het, wat water voor hulle oopgekloof het om vir Hom 'n ewige Naam te maak, Hy wat hulle deur die watermassa laat trek het, soos 'n perd deur 'n woestyn – sonder om te struikel?” Soos wanneer beeste in 'n vallei afdaal, het die Gees van die Here aan Israel rus gegee. So het U u volk gelei om vir U 'n roemryke Naam te maak. Kyk uit die hemel, uit u vorstelike, heilige en roemryke woning, en sien! Waar is u ywer en u magtige dade? U innerlike ontroering, u ontferming word van my teruggehou. U is immers ons Vader. Ja, Abraham, hy ken ons nie, en Israel, hy erken ons nie; U, Here, is ons Vader. Ons Losser van altyd af, is u Naam! Waarom het U, Here, ons van u paaie laat afdwaal, ons harte verhard, sodat ons nie meer vir U ontsag gehad het nie? Kom terug ter wille van u diensknegte, die stamme van u erfdeel! Vir 'n kort tydjie het u heilige volk dit besit, maar ons teenstanders het u heiligdom vertrap. Ons het van lank gelede af al geword soos hulle oor wie U nie regeer het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie. As U maar die hemel wou oopskeur en afdaal – die berge sal bewe van u teenwoordigheid. Soos vuur struikgewas laat opvlam, soos water deur vuur tot kookpunt kom, so sal die nasies bewe vanweë u teenwoordigheid, wanneer U u Naam bekend maak aan u teenstanders. Toe U ontsagwekkende dade gedoen het wat ons nie verwag het nie, het U afgedaal; vanweë u teenwoordigheid het die berge gebewe. Van die vroegste tye af het niemand dit gehoor nie, daarvan verneem nie, het geen oog 'n god gesien nie, buiten U, wat optree vir dié wat op Hom wag. U kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op u paaie aan U bly dink. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig. Ons het lank in sonde verkeer – sal ons verlos word? Ons almal het geword soos iets wat onrein is, soos 'n besoedelde kledingstuk is al ons geregtighede. Ons almal het verwelk soos blare, en soos die wind het ons sondeskuld ons weggedra. Daar is niemand wat u Naam aanroep of homself wakker skud om aan U vas te hou nie; want U het u gesig vir ons verberg, ons oorgelewer aan die greep van ons sondeskuld. Maar nou, Here, U is ons Vader. Ons is die klei en U is ons pottebakker – ons almal is die werk van u hande. Moenie mateloos toornig wees nie, Here; moenie vir altyd ons sondeskuld onthou nie! Ja, sien tog in: Ons almal is u volk. U heilige stede het woestyn geword: Sion is 'n woestyn, Jerusalem het 'n woesteny geword. Ons heilige en pragtige •tempel, waar ons voorouers U geloof het, het 'n prooi van vuur geword – alles wat vir ons kosbaar is, het 'n puinhoop geword. Sal U oor hierdie gebeure U bedwing, Here? Sal U bly swyg, ons mateloos verneder? “Ek het My laat raadpleeg deur hulle wat nie na My gevra het nie; Ek het My laat vind deur hulle wat My nie gesoek het nie. Ek het gesê, ‘Hier is Ek! Hier is Ek!’ vir 'n nasie wat nie na my Naam genoem is nie. Ek het my hande die hele dag uitgestrek na 'n koppige volk, hulle wat, agter hulle eie planne aan, 'n pad loop wat nie goed is nie, 'n volk wat My voortdurend in my gesig uittart, wat offerdiere slag in die tuine, dit verbrand op altare van baksteen, wat in grafte sit, op geheime plekke oornag, wat die vleis van varke eet, met die sous van iets walgliks in hulle potte, wat sê, ‘Bly waar jy is! Moenie naby my kom nie, want ek is te heilig vir jou.’ Sulke mense is rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag smeul. Kyk, voor My staan geskryf: Ek swyg nie, maar Ek vergeld. En Ek sal vergeld – in hulle skote – julle sondeskuld saam met die sondeskuld van julle voorouers, ” sê die Here, “hulle wat offers verbrand het op die berge, en My op die heuwels beledig het, Ek sal hulle loon van vroeër in hulle skote aftel.” So sê die Here: “Wanneer daar nog sap te vinde is in 'n druiwetros, sal iemand sê, ‘Moet dit nie vernietig nie, want daar is seën in.’ So sal Ek ook optree ter wille van my diensknegte, sodat alles nie vernietig word nie. Ek sal uit Jakob 'n nageslag laat voortkom, en uit Juda dié wat my berge sal besit. My uitverkorenes sal dit in besit neem, en my diensknegte sal daar woon. Saron sal as weiveld vir kleinvee dien, en die vallei van Agor as rusplek vir beeste, en vir my volk wat My geraadpleeg het. Maar julle wat die Here verlaat het, wat my heilige berg vergeet het, wat 'n tafel dek vir Ghad, wat 'n kruik gemengde wyn skink vir “Meni” – Ek bestem julle vir die swaard. Julle sal almal kniel vir die slagting, omdat Ek geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, omdat Ek gepraat het, maar julle nie geluister het nie. Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë; en wat Ek nie aanvaar nie, het julle gekies.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, my diensknegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk, my diensknegte sal drink, maar julle sal dors ly. Kyk, my diensknegte sal hulle verheug, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my diensknegte sal jubel met blye harte, maar julle sal om hulp roep met bedroefde harte; met 'n gebroke gees sal julle huil. Julle sal julle naam agterlaat om deur my uitverkorenes in verwensings gebruik te word. Die Heer, die Here, sal jou doodmaak; maar aan sy diensknegte sal Hy 'n ander naam gee. Wie vir homself seën afsmeek in die land, sal vir hom seën afsmeek van die ware God. En wie in die land 'n eed aflê, sal dit aflê by die ware God; want die benoudhede van vroeër is vergete, ja, vir my oë is dit verborge. “ Ja, Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie. Maar wees bly en juig vir altyd oor wat Ek gaan skep. Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep as iets om oor te juig, en haar volk tot 'n vreugde. Ek sal oor Jerusalem juig en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van 'n geroep om hulp nie. Daar sal nie meer 'n suigeling wees van net enkele dae, of 'n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as 'n vervloekte beskou word. Hulle sal huise bou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet. Hulle sal nie bou, sodat 'n ander dit bewoon nie, of plant, sodat 'n ander dit eet nie. Want soos die lewensdae van 'n boom, sal die lewensdae van my volk wees. Die arbeid van hulle hande sal my uitverkorenes self geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie; hulle sal nie kinders verwek vir 'n verskriklike lot nie; want hulle sal 'n geslag geseëndes van die Here wees, en hulle nakomelinge saam met hulle. Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al. 'n Wolf en 'n lam sal saam wei, 'n leeu sal soos 'n bees hooi eet; maar 'n slang – stof sal sy kos wees. Mense sal nie kwaad aanrig of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie, ” sê die Here. So sê die Here: “Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank van my voete. Waar is die huis wat julle vir My sou bou, en waar is my rusplek? Al hierdie dinge – my hand het dit gemaak; so het alles ontstaan,” is die uitspraak van die Here. “Op so iemand sal Ek ag slaan: op 'n magtelose met 'n verslae gees, wat sidder vir my woord. “ Iemand slag 'n bul, en vel 'n mens neer; bring 'n lam as maaltydoffer, en breek die nek van 'n hond; bring 'n •graanoffer, en ook die bloed van varke; bring wierook as simboliese offer, en prys 'n valse god aan. Aangesien hierdie mense hulle eie paaie gekies het, en hulle sielsgelukkig is met hulle verfoeilike afgode, sal ook Ek kies om hulle streng te behandel; en dit wat hulle vrees sal Ek oor hulle bring. Want toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie; toe Ek gepraat het, het hulle nie geluister nie. Hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en wat onaanvaarbaar is vir My, het hulle gekies.” Hoor die woord van die Here, julle wat sidder vir sy woord: “Julle volksgenote wat julle haat, wat julle verstoot ter wille van my Naam, het gesê, ‘Laat die Here verheerlik word, sodat ons julle vreugde kan aanskou!’ Maar self sal hulle beskaamd staan.” Die geluid van 'n rumoer uit die stad! 'n Geluid uit die •tempel! Die stem van die Here wat met sy vyande afreken volgens wat hulle verdien! Nog voordat sy ineenkrimp, het sy reeds geboorte gegee; nog voordat die geboortepyne haar oorval, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Wie het al van so iets gehoor? Wie het al sulke dinge gesien? Word 'n land op een dag gebore; of word 'n volk eensklaps in die wêreld gebring? Ja, net toe sy ineenkrimp, het Sion ook geboorte gegee aan haar kinders. “Sal Ek wat die water laat breek, nie geboorte laat gee nie?” vra die Here. “Of sal Ek, wat geboorte laat gee, die geboorte terughou?” vra jou God. “ Wees verheug saam met Jerusalem, en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees besonder bly saam met haar, almal wat oor haar getreur het, sodat julle kan suig aan haar vertroostende borste, en versadig kan raak, sodat julle kan drink en julle kan verkwik aan haar vol, ryk borste.” Want so sê die Here: “Kyk, Ek gaan vrede na haar toe afkeer soos 'n rivier, die luister van nasies soos 'n spruit in vloed; en julle sal drink. Op die heup sal julle gedra word, en op knieë gewieg word. Soos iemand se moeder hom troos, so sal Ek self julle troos; in Jerusalem sal julle getroos word. As julle dit sien, sal julle harte bly wees; julle gebeente sal soos groen plante gedy.” Die mag van die Here sal bekend wees by sy diensknegte, en Hy sal sy vyande vervloek. Want kyk, die Here sal met vuur kom, en soos 'n stormwind is sy strydwaens, om met woede sy toorn te laat geld, en sy dreigement kom met vuurvlamme. Ja, met vuur en sy swaard gaan die Here die saak bereg met alle mense. Talryk sal dié wees wat deur die Here verslaan word. “ Dié wat hulleself heilig en hulle reinig om na die tuine te gaan, agter een aan wat in die middel is, terwyl hulle varkvleis, weersinwekkende dinge en muise eet, sal saam tot 'n einde kom,” is die uitspraak van die Here. “ En Ek? Wat hulle dade en gedagtes betref, die vuur is aan die kom om al die nasies en tale bymekaar te dryf. Hulle sal kom en my heerlikheid sien. Ek sal onder hulle 'n teken oprig, en sommige van dié wat oorleef, stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud – hulle wat die boog span – na Tubal en Jawan, die verre eilande wat nog nie van my roem gehoor en my heerlikheid nog nie gesien het nie. Hulle sal my heerlikheid onder die nasies bekend maak. Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies, as die Here se geskenk, op perde en strydwaens, op waens, muile en kamele, na my heilige berg, Jerusalem, bring,” sê die Here, “net soos die Israeliete die graanoffer in rein houers na die huis van die Here bring. Ek sal sommige van hulle selfs as priesters en Leviete neem,” sê die Here. “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, voor My sal bly voortbestaan,” is die uitspraak van die Here, “so sal julle nageslag en julle naam bly voortbestaan. En dan, van nuwemaan tot nuwemaan, van Sabbat tot Sabbat, sal alle mense kom om voor My in aanbidding te buig,” sê die Here. “Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense.” Die woorde van Jeremia, seun van Hilkia, uit die priestergeslag in Anatot, in die gebied van Benjamin. Die woord van die Here het tot hom gekom in die dae van Josia, seun van Amon, die koning van Juda, in die dertiende jaar van sy regering, en ook in die dae van Jojakim, seun van Josia, die koning van Juda, tot aan die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia, seun van Josia, die koning van Juda, tot met die wegvoering van Jerusalem in die vyfde maand. Die woord van die Here het tot my gekom: “Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem. ” Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog 'n kind. ” Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog 'n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here. Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. “Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.” Die woord van die Here het tot my gekom: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien die tak van 'n amandelboom.” Toe sê die Here vir my: “Jy het goed gekyk, want Ek is bedag daarop om my woord uit te voer. ” Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek sien 'n stomende pot – sy inhoud kook van die noordekant af oor. ” Toe sê die Here vir my: “Uit die noorde sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land. Want kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die koninkryke in die noorde oproep,” is die uitspraak van die Here, “en hulle sal kom en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van Jerusalem se poorte, en by al haar stadsmure reg rondom, en by al die dorpe van Juda. Ek sal my oordele oor hulle uitspreek weens al hulle boosheid – omdat hulle My verlaat het, vir ander gode offers verbrand het en voor hulle handewerk in aanbidding gebuig het. Maar jy, jy moet jou heupe omgord, gereedmaak en vir hulle alles gaan sê wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou 'n rede om vir hulle bang te wees. En Ek, kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad, 'n ysterpilaar en 'n koperstadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou,” is die uitspraak van die Here, “om jou te red!” Die woord van die Here het tot my gekom: “Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Ek onthou jou – die trou van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, hoe jy my gevolg het in die woestyn, in 'n land waar nie gesaai word nie. Israel was heilig vir die Here, die eerste vrugte van sy opbrengs. Almal wat daarvan sou eet, sou skuldig wees – onheil sou hulle oorval,” ’ ” is die uitspraak van die Here. Hoor die woord van die Here, huis van Jakob, en al die familiegroepe van die huis van Israel! So sê die Here: “Watter onreg het julle voorouers by My gevind, dat hulle hulle aan My onttrek het, nuttelose afgode gevolg en self nutteloos geword het? Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het – in 'n land van woestynvlaktes en afgronde, 'n land van droogte en diepe duisternis, 'n land waardeur niemand trek nie, en waar geen mens woon nie?’ Ek het julle gebring na 'n land met boorde, om die vrugte en die goeie daarvan te geniet. Maar julle het ingekom en my land verontreinig; van my eiendom het julle iets afstootliks gemaak. Die priesters het nie gevra, ‘Waar is die Here? ’ nie; hulle wat die onderrig hanteer, ken My nie. Die herders het teen My oortree; die profete profeteer vir Baäl, en hulle volg dié wat geen voordeel bied nie. Daarom kla Ek julle steeds aan,” is die uitspraak van die Here, “en ook julle kleinkinders sal Ek aankla. Ja, gaan maar oor na die eilande van die Kittiërs en kyk self! Stuur maar na Kedar 'n afvaardiging, en let goed op – kyk of so iets al gebeur het! Het 'n nasie sy gode al verruil? En dit is nie eers gode nie! Maar my volk het sy Majesteit verruil vir hulle wat geen voordeel bied nie. Staan verslae daaroor, hemele! Sidder en beef onbedaarlik!” is die uitspraak van die Here. “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie. “Is Israel 'n dienskneg? Of is hy van geboorte af 'n slaaf? Waarom het hy dan buit geword? “Die jong leeus brul teen hom; hulle brul hard. Hulle het sy land 'n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoners. Ook die mense van Nof en Tagpanhes sal jou skedel verpletter. Het jy, Israel, dit nie aan jouself gedoen, deurdat jy die Here jou God verlaat het toe Hy jou op die pad gelei het nie? Daarom, wat wil jy bereik deur na Egipte te gaan? Is dit om die Sigor se water te drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië te gaan? Is dit om die Rivier se water te drink? Jou boosheid vermaan jou; jou afvalligheid wys jou tereg. Erken dan en sien in dat dit sleg en bitter is wanneer jy die Here jou God verlaat, en daar by jou geen vrees vir My is nie,” is die uitspraak van my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. “Ja, lank gelede het jy jou juk gebreek, jou stroppe stukkend geruk en gesê, ‘Ek weier om te dien!’ Maar op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom het jy gaan lê en hoereer. Ek self het jou geplant as 'n keurdruif, 'n egte, edel wortelstok. Hoe kon jy dan verander in wilde druiwe, in 'n vreemde wingerdstok! Ja, al was jy jou af met soda, en gebruik baie loog; jou sondeskuld bly 'n vlek voor My,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Hoe kan jy sê, ‘Ek het my nie verontreinig nie; die Baäls het ek nie gevolg nie’? Kyk net na jou pad in die dal! Besef wat jy gedoen het! Jy is 'n vinnige jong kameelkoei wat heen en weer rondhardloop, soos 'n wilde donkie gewoond aan die woestyn. In haar heftige drang snuif sy die wind. Haar bronstigheid – wie kan dit beteuel? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie. In haar bronstyd sal hulle haar vind. Weerhou jou voete van kaalvoet loop, en jou keel van dors! Maar jy sê, ‘Tevergeefs! Nee, want ek het vreemdes lief; hulle sal ek volg.’ Soos 'n dief in die skande kom wanneer hy betrap word, so staan die huis van Israel beskaamd – hulle, hulle konings, hulle •hoë amptenare, hulle priesters en profete – hulle wat vir 'n stuk hout sê, ‘Jy is my vader!’ en vir 'n klip, ‘Jy het my in die wêreld gebring!’ Want hulle draai hulle rug op My en wys nie hulle gesig nie. Maar in die tyd van hulle teenspoed sê hulle, ‘Staan op en verlos ons!’ Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan, as hulle jou kan verlos in die tyd van jou teenspoed. Want soveel as wat jou dorpe is, soveel het jou gode geword, Juda. Waarom kla julle Mý aan? Julle het almal teen My oortree,” is die uitspraak van die Here. “Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; teregwysing het hulle nie aanvaar nie. Julle swaarde het julle profete verslind, soos 'n leeu wat verskeur. ” Julle is daardie geslag. Slaan ag op die woord van die Here! “Het Ek 'n woestyn geword vir Israel of 'n land van digte duisternis? Waarom sê my volk, ‘Ons loop vry rond; ons sal nie weer na U gaan nie?’ “Sal 'n jong meisie haar juwele vergeet, of 'n bruid haar lyfserpe? Tog het my volk My vergeet, ontelbare dae lank al. Hoe goed vind jy jou pad om liefde te gaan soek! Daarom kan jy ook die slegste vroue jou paaie leer! Selfs aan die some van jou klere word dit gevind – die bloed van mense, van onskuldige behoeftiges, wat jy nie by 'n inbraak betrap het nie. Maar teen dit alles in hou jy vol, ‘Ek is onskuldig; sy toorn is beslis van my afgewend.’ Kyk, Ek gaan met jou 'n regstryd voer, omdat jy volhou, ‘Ek het nie gesondig nie.’ Hoe uiters maklik verander jy van koers. Ook in Egipte sal jy bedroë daarvan afkom, net soos jy in Assirië bedroë daarvan afgekom het. Ook daarvandaan sal jy weggaan met jou hande op jou kop. Want die Here het dit waarop jy jou vertroue plaas, verwerp. Jy sal nie slaag by hulle nie.” Jy moet sê: “As 'n man sy vrou wegstuur, en sy gaan van hom af weg en word die vrou van 'n ander man, sal hy weer na haar teruggaan? Sal daardie land nie heeltemal besoedel wees nie? Jy is die een wat met baie minnaars gehoereer het, en jy wil na My terugkeer?” is die uitspraak van die Here. “Kyk op na die woestynpaaie en sien self! Waar is jy nie misbruik nie? Langs die paaie het jy hulle ingewag soos 'n Arabier in die woestyn. Jy het die land besoedel met jou hoerery en boosheid! Die stortreëns is teruggehou, en die laatreëns was net nie daar nie. Maar jy het die voorkop van 'n prostituut; jy weier om jou te skaam. Het jy My nie so pas aangeroep as ‘my Vader’ nie? ‘Die boesemvriend van my jeug is U! Sal Hy dan vir altyd toornig bly, of toorn vir ewig koester?’ Kyk, so praat jy, maar jy doen bose dinge, en hou daarmee vol.” In die dae van koning Josia het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die Here. Die Here het verder vir my gesê: “Die afvallige, Israel, het haarself regverdiger gedra as die verraderlike, Juda. Gaan skreeu hierdie woorde uit na die noorde en sê, ‘Keer terug, afvallige, Israel!’ ” is die uitspraak van die Here. “Ek sal nie met 'n stroewe gelaat na julle kyk nie, want Ek is vol troue liefde,” is die uitspraak van die Here. “Ek sal nie vir altyd toornig wees nie. Erken net jou sondeskuld, want teen die Here jou God het jy oortree. Jy het jou paaie in alle rigtings laat loop na vreemdes onder elke skaduryke boom. Na my stem het julle nie geluister nie,” is die uitspraak van die Here. “Keer terug, afvallige kinders!” is die uitspraak van die Here, “want dit is Ek wat heer is oor julle. Ek sal julle terugneem, een uit 'n stad en twee uit 'n familiegroep; en Ek sal julle na Sion bring. Ek sal herders na my hart vir julle gee. Hulle sal met kennis en insig aan julle weiding verskaf. En wanneer julle vermeerder en vrugbaar is in die land in daardie dae,” is die uitspraak van die Here, “sal hulle nie meer sê, ‘Die ark van die Here se verbond!’ nie. Dit sal trouens nie eers in hulle gedagte opkom nie. Hulle sal nie daaraan dink of dit mis nie. Dit sal ook nie weer gemaak word nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem “die troon van die Here” noem. By haar sal al die nasies byeenkom ter wille van die Naam van die Here, ter wille van Jerusalem. Hulle sal nie langer die verstoktheid van hulle bose harte volg nie. In daardie dae sal die huis van Juda by die huis van Israel aansluit, en saam sal hulle uit 'n land in die noorde aankom in die land wat Ek vir hulle voorouers as erfenis gegee het. “ En Ek, Ek het gedink: Hoe kan Ek jou tussen die seuns opneem, vir jou 'n begeerlike land gee – as erfenis die heel beste van die sierade van nasies. Ek het gedink: My Vader sal julle my noem, en van My nie wegdraai nie. Maar soos 'n vrou verraderlik haar minnaar verlaat, so was julle verraderlik teenoor My, huis van Israel,” is die uitspraak van die Here. 'n Stem klink op langs die woestynpaaie: die gehuil, die smeekbedes van die Israeliete, want hulle het die pad byster geraak, hulle het die Here hulle God vergeet. “Keer terug, afvallige kinders! Ek sal julle afvalligheid genees.” “Hier is ons, ons kom na U toe; want U is die Here ons God. Waarlik, die geluide van die heuwels af, die gedreun by die berge, is sinsbedrog. Waarlik, by die Here ons God lê die verlossing van Israel. Die skande het, van ons jeug af, verteer wat ons voorouers met moeite verwerf het: hulle kleinvee en beeste, hulle seuns en dogters. In ons skaamte wil ons gaan lê; ons vernedering moet ons bedek, want teen die Here ons God het ons gesondig – ons en ons voorouers – van ons jeug af tot vandag toe. Ons het nie geluister na die stem van die Here ons God nie. “As jy dan omdraai, Israel,” is die uitspraak van die Here, “moet jy na My toe omdraai. As jy jou verfoeilike afgode verwyder uit my teenwoordigheid, sal jy nie langer rondswerf nie. As jy sweer, ‘So waar as die Here leef’ – in trou, in reg en geregtigheid – sal nasies vir hulleself seën soek by Hom en hulle in Hom beroem. ” Ja, so sê die Here vir die manne van Juda en Jerusalem: “Breek vir julle nuwe grond oop. Moenie tussen die dorings saai nie. Besny julleself vir die Here; verwyder die voorhuid van julle harte, manne van Juda en inwoners van Jerusalem. Anders breek my woede los soos 'n vuur en brand sonder dat iemand dit blus, vanweë julle bose dade. ” “ Bring berig in Juda! Kondig dit aan in Jerusalem, en sê, ‘Blaas •ramshorings in die land!’ Roep uit volle bors, en sê, ‘Kom bymekaar! Laat ons die versterkte stede binnegaan!’ Hou 'n banier omhoog in die rigting van Sion! Soek skuiling! Moenie stil staan nie! Want Ek bring onheil uit die noorde – 'n groot ineenstorting.” 'n Leeu het uit sy ruigte opgestaan, 'n verskeurder van volke is op pad. Hy het sy lêplek verlaat om van jou land 'n skrikbeeld te maak. Jou stede verval, is sonder inwoners. Daarom, trek rouklere aan! Rou en huil! Want die brandende toorn van die Here is nie van ons afgewend nie. “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal die koning en sy •hoë amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal geskok wees, die profete sal verslae staan.” Toe het ek gesê: “Ag, Here, my Heer! Waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei deur te sê, ‘Julle sal vrede hê,’ terwyl die swaard op die keel lê.” In daardie tyd sal vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word: “'n Versengende wind vanaf die kaal hoogtes in die woestyn is op pad na die dogter van my volk, maar nie om 'n oes uit te wan of te sif nie. 'n Wind, te sterk daarvoor, kom op My af. Op my beurt gaan Ek nou oordele oor hulle uitspreek.” Kyk, soos wolke kom hy op, en soos 'n stormwind is sy strydwaens. Vinniger as arende is sy perde. “Wee ons, want ons word verwoes!” “Spoel jou hart skoon van kwaad, Jerusalem, sodat jy gered kan word! Hoe lank gaan planne van onheil nog in jou midde vertoef? Ja, 'n stem bring berig uit Dan, en kondig onheil aan vanaf die heuwelland van Efraim, ‘Vertel dit vir die nasies! Kyk, verkondig dit aan Jerusalem! Bewakers kom uit 'n ver land; teen die stede van Juda roep hulle hardop uit. Soos bewakers van landerye is hulle reg rondom haar, want teen My het sy in opstand gekom,’ ” is die uitspraak van die Here. “Jou handel en wandel het jou dit aangedoen. Hierdie is die gevolg van jou boosheid! Ja, dit is bitter, want dit raak jou aan die hart.” O, die pyn, die pyn in my binneste! Ek krimp ineen! O, die wande van my hart! My hart klop onstuimig in my! Ek kan nie swyg nie; want my •siel het ramshorings gehoor, ja, krygsgeskreeu! Ineenstorting volg op ineenstorting, ja, die hele land word verwoes. Onverwags word my tente verwoes, binne 'n oomblik my tentdoeke. Hoe lank sal ek nog die banier sien, die geluid van die ramshoring hoor? “Ja, my volk is dom; Hulle ken My nie. Dwase kinders is hulle; hulle het nie insig nie. Slim om kwaad te doen, dit is hulle; maar om goed te doen, dit ken hulle nie.” Ek het na die aarde gekyk, en kyk, dit was woes en leeg, ook na die hemel, en daar was geen lig nie! Ek het na die berge gekyk, en kyk, hulle het geskud, en al die heuwels het gebewe! Ek het gesien: Kyk, daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het gevlug! Ek het gesien: Kyk, die boord was 'n woestyn, en al die dorpe was afgebreek deur die Here se toedoen, vanweë sy brandende toorn! Ja, so sê die Here: “'n Woesteny sal die hele land word, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie. Hieroor sal die aarde treur, en die hemel daarbo verdonker. Ja, Ek het dit aangekondig; dit is my voorneme. Ek sal nie jammer wees nie, nie daarop terugkom nie. ” Vir die geskreeu van strydwabemanning en boogskutters slaan elke dorp op die vlug. Hulle gaan die digte bosse in, op rotse klim hulle. Elke dorp is verlate; geen mens woon meer daarin nie. En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al klee jy jou in karmosyn, al tooi jy jou met juwele van goud, al laat jy jou oë groter lyk met grimering – tevergeefs maak jy jou mooi. Minnaars verag jou; dit is jou lewe wat hulle soek. Ja, ek het 'n kreet gehoor soos van iemand in pyn – benoudheid soos van 'n vrou wat aan haar eersteling geboorte gee. Dit is die kreet van die dogter van Sion; sy snak na asem, sy strek haar hande uit: “Wee my! Ek is gedaan, my lewe behoort aan moordenaars!” “ Deurkruis die strate van Jerusalem; kyk tog rond en let op! Soek op haar pleine of julle iemand vind, of daar iemand is wat reg doen, wat na betroubaarheid soek; dan sal Ek haar vergewe. Al sê hulle, ‘So waar as die Here leef’, sweer hulle tog vals.” Here, u oë, is dit nie gerig op betroubaarheid nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie. U het hulle verniel, maar hulle het geweier om teregwysing te aanvaar. Hulle het hulle gesigte harder gemaak as 'n rots; hulle het geweier om om te draai. Ek het by myself gedink: Hulle is maar die armes; hulle is dom, want hulle ken nie die weg van die Here, die beslissings van hulle God nie. Laat ek my na die belangrikes wend, met hulle praat, want hulle is mense wat die Here se weg en hulle God se beslissings ken. Maar gelyktydig het hulle die juk gebreek en die stroppe stukkend geruk. Daarom trek 'n leeu uit die bos hulle plat, gaan 'n wolf hulle verniel. 'n Luiperd hou hulle dorpe dop; elkeen wat daar uitgaan, word verskeur. Want hulle oortredings is talryk, hulle afvalligheid is oorweldigend. “ Om watter rede sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat, en sweer by wat geen gode is nie. Ek het hulle versadig, maar hulle het egbreuk gepleeg, in 'n hoerhuis onderdak gevind. Hulle het bronstige, paarlustige hingste geword; elkeen van hulle runnik vir die vrou van sy medemens. Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die Here. “Of sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos dié nie? “ Klim op haar terrasse en rig verwoesting aan, maar moet dit nie heeltemal vernietig nie. Verwyder haar hegranke, want dit is nie die Here s'n nie. Ja, die huis van Israel en die huis van Juda het uiters verraderlik opgetree teenoor My,” is die uitspraak van die Here. Hulle het die Here verloën; hulle het gesê: “Nie Hy nie! 'n Ramp sal nie oor ons kom nie; en swaard en hongersnood sal ons nie beleef nie. Die profete sal wind word; die uitsprake van God is nie by hulle te vinde nie.” Mag dit met hulle so gaan! Daarom, so sê die Here, die God van alle magte: “Omdat julle hierdie woord spreek – kyk, van my woorde in jou mond gaan Ek 'n vuur maak, en van hierdie volk brandhout. Dit sal hulle verteer. Kyk, Ek gaan teen julle 'n nasie bring, van ver af, huis van Israel,” is die uitspraak van die Here. “Dit is 'n bestendige nasie, 'n nasie wat van oudsher af daar is, 'n nasie wie se taal jy nie ken nie, en jy sal nie verstaan wat hulle praat nie. Hulle pylkokers is soos oop grafte; hulle is almal helde. Dié nasie sal jou oes en jou brood verslind; hulle sal jou seuns en dogters verslind; hy sal jou kleinvee en beeste verslind; hy sal jou wingerd en vyebome verslind; hy sal jou versterkte stede waarop jy vertrou, verpletter met die swaard. “ Maar ook in daardie dae,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek julle nie heeltemal tot niet maak nie. En as julle sou vra, ‘Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?’ moet jy vir hulle sê, ‘Soos wat julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, sal julle vreemdes dien in 'n land wat nie aan julle behoort nie.’ “Maak dit bekend in die huis van Jakob; en kondig dit aan in Juda, ‘Luister tog hierna, dwase volk sonder verstand, wat oë het, maar nie sien nie, wat ore het, maar nie hoor nie! Het julle nie ontsag vir My nie,’ ” is die uitspraak van die Here, “of krimp julle nie ineen voor My nie. Ek wat die sand gestel het as grens vir die see, as 'n ewige perk waaroor hy nie mag gaan nie? Al slaan sy golwe donderend neer, hulle rig niks uit nie; al druis hulle, hulle sal nie oor die grens gaan nie. Maar hierdie volk het onversetlike harte en is opstandig. Hulle het afgewyk en weggegaan. Hulle het nie by hulleself gedink nie, Ons moet tog ontsag hê vir die Here ons God, vir Hom wat reënbuie gee – vroeë en laatreëns, elkeen op sy tyd, vir Hom wat die vasgestelde weke van die oes vir ons in stand hou. Julle sondeskuld het hierdie dinge versteur; julle sonde het die goeie van julle weggehou. “Ja, daar is goddeloses wat hulle onder my volk bevind. Gebukkend loer hulle, asof in die skuiling van voëlvangers. Hulle stel wippe; mense, dié vang hulle. Soos 'n mandjie vol voëls, so is hulle huise vol bedrog. Daarom het hulle belangrik en ryk geword. Hulle het vet en blink geraak; hulle is ook onoortreflik met dade van boosheid. 'n Regseis waaroor hulle nie uitspraak lewer nie, is die regseis van 'n vaderlose kind, sodat hulle dit nie laat slaag nie. Oor die regsaak van behoeftiges gee hulle geen beslissing nie. Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die Here. “Of sou Ek My op 'n nasie soos hierdie nie wreek nie? Iets skrikwekkends, iets afskuweliks gebeur in die land: Die profete profeteer leuens, en die priesters skraap hande vol bymekaar. En my volk hou daarvan so! Wat meer sal julle nog doen?” “ Soek skuiling, mense van Benjamin, weg van Jerusalem af; blaas selfs in Tekoa 'n •ramshoring! Stuur 'n rooksein op bokant Bet-Hakkêrêm! Want onheil doem op uit die noorde – 'n groot ineenstorting dreig. Die pragtige en fynbesnaarde, die dogter van Sion, vernietig Ek. Na haar toe sal herders kom met hulle kuddes. Op haar slaan hulle tente op, reg rondom. Elkeen bewei sy strook.” “ Heilig 'n oorlog teen haar! Maak gereed! Laat ons teen die middag opruk! Wee ons! Want die dag gaan verby – die aandskaduwees word lank. Maak gereed! Laat ons in die nag opruk; laat ons haar vestings verwoes!” Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kap bome af! Hoop 'n beleëringswal op teen Jerusalem – dít is die stad! Alles in haar is op bruikleen; daar is afgeperste goedere binne-in haar. Soos 'n put sy water vars hou, hou sy haar boosheid vars. ‘Geweld!’ en ‘Verdrukking!’ word in haar gehoor. Voor my oë is daar voortdurend lyding en verwonding. Aanvaar die teregwysing, Jerusalem; anders ruk Ek Myself van jou los; anders maak Ek jou 'n woesteny, 'n land wat nie bewoon word nie.” So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Soos met die naoes van 'n wingerdstok, sal hulle die oorblyfsel van Israel skoon afoes. Bring jou hand telkens terug na die lote soos een wat druiwe snoei!” Met wie moet ek praat? Wie moet ek as getuies roep, sodat hulle kan luister? Kyk, onbesnede is hulle ore, sodat hulle nie kan ag gee nie. Kyk, die woord van die Here het vir hulle 'n bespotting geword; hulle aanvaar dit nie. Ek is met die woede van die Here vervul; ek is moeg daarvan om my in te hou. “Stort dit uit oor kinders op straat, en tegelyk oor die groep jongmense. Ja, mans sowel as vroue sal gevange geneem word, oues saam met bejaardes. Hulle huise sal na ander oorgaan, hulle landerye en vroue daarmee saam. Want Ek steek my hand uit teen die inwoners van die land,” is die uitspraak van die Here. “ Ja, klein en groot maak almal onregverdige wins. Van profeet tot priester – hulle almal pleeg bedrog. Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op 'n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ Maar daar is geen vrede nie. Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Hulle skaam hulle hoegenaamd nie, ken selfs geen skaamte nie. Daarom sal hulle val onder die gesneuweldes; in die tyd wanneer Ek hulle tot verantwoording roep, sal hulle tot 'n val kom,” het die Here gesê. So sê die Here: “Gaan staan langs die paaie en kyk; vra na die weë uit die voortyd. Vra waar die pad na die goeie is, en volg dit! Vind so sielerus! Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie gaan nie.’ Toe het Ek wagte oor julle aangestel, ‘Gee ag op die geluid van die ramshoring!’ Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie ag gee nie.’ Daarom, luister, nasies! Neem kennis, volksvergadering, van wat met hulle gaan gebeur! Luister, land! Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie volk – die vrug van hulle planne. Want op my woorde het hulle nie ag geslaan nie, en my wet, dit het hulle verwerp. Waarom nog vir My wierook uit Skeba laat kom, of kosbare kalmoes uit 'n ver land? Julle •brandoffers is nie aanvaarbaar nie, en julle •maaltydoffers geval My nie. ” Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan voor hierdie volk struikelblokke lê waaroor hulle sal val – ouers en kinders saam; bure en vriende sal ten gronde gaan.” So sê die Here: “Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde; 'n groot nasie is wakker gemaak by die uithoeke van die aarde. Boog en kromswaard hou hulle gereed; harteloos is hulle, en genadeloos. Hulle klink soos die see wat dreun, op perde ry hulle; hulle is manne wat in 'n gevegslinie opgestel is teen jou, dogter van Sion.” Ons het die gerug oor hulle gehoor; ons moed het ons begewe. Benoudheid het ons beetgepak, angs soos wanneer 'n vrou geboorte gee. Moenie na die veld uitgaan nie! Op pad moet julle nie gaan nie! Ja, die vyand het 'n swaard; daar is verskrikking aan alle kante! Dogter van my volk, omgord jou met rouklere en rol in die as! Rou soos oor 'n enigste kind – 'n bittere roubeklag! Want onverwags kom die verwoester oor ons. “As toetser van silwer het Ek jou by my volk aangestel, as 'n versterkte stad, sodat jy hulle optrede kan ken en toets. Hulle is almal rebels, onversetlik – koper en yster! Hulle gaan rond as kwaadstokers. Hulle almal is ontaard. Die blaasbalk blaas; uit die vuur kom lood ongeskonde. Tevergeefs word daar aanhoudend gesmelt; die slegtes word nie afgeskei nie. ‘Verworpe silwer’ word hulle genoem, want die Here het hulle verwerp.” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: “Gaan staan by die poort van die huis van die Here. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die Here, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die Here in aanbidding te buig! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit!’ nie. As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, •vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie. “ ‘ “ Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, 'n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die Here. “ ‘ “ Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ” “ En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, en moenie by My pleit nie. Want Ek sal glad nie na jou luister nie. Sien jy nie wat doen hulle in die dorpe van Juda en op die strate van Jerusalem nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die pa's steek die vuur aan. Die vroue knie deeg om offerkoeke gereed te kry vir die koningin van die hemel, en hulle giet drankoffers uit vir ander gode, net om My te tart. Tart hulle My?” is die uitspraak van die Here. “Tart hulle nie hulleself nie, sodat hulle beskaamd sal staan? Daarom,” so sê die Heer, die Here, “Kyk, my toorn en my woede sal uitbars teen hierdie plek, oor mens en dier, oor die bome van die veld en oor die opbrengs van die landerye. Dit sal brand en nie geblus word nie.” “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Julle •brandoffers, voeg dit by julle •maaltydoffers en eet vleis! Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ Maar hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle het voortgegaan met hulle eie planne, in die verstoktheid van hulle bose harte. Hulle het agteruit gegaan en nie vooruit nie. Vanaf die dag dat julle voorouers uit Egipteland getrek het tot vandag toe, het Ek aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur – dag vir dag. Maar hierdie volk het nie na My geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig en het hulle nog slegter gedra as hulle voorouers. Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie; jy moet hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Dan moet jy vir hulle sê, ‘Dit is die nasie wat nie na die stem van die Here hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde. ’ ” ’ ” Sny jou lang hare af, Jerusalem, en gooi dit weg! Hef op die woestynpaaie 'n klaaglied aan. Want die Here het verwerp, Hy het die geslag wat sy gramskap opwek, prysgegee. “Ja, die nageslag van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë,” is die uitspraak van die Here. “Hulle het hulle verfoeilike afgode geplaas in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. Hulle het die offerhoogtes van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer daar nie meer gesê sal word ‘Tofet’ en ‘Ben-Hinnomdal’ nie, maar ‘Moorddal’. Hulle sal in Tofet mense begrawe vanweë 'n gebrek aan plek. Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie. Ek sal in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem die geluid van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid uitdoof, want die land sal 'n puinhoop word. “In daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal hulle die beendere van die konings van Juda, die beendere van die •hoë amptenare, die priesters, die profete en die beendere van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal en dit oopsprei voor die son en die maan en al die hemelliggame vir wie hulle lief was, wat hulle gedien het, waaragter hulle aangeloop het, wat hulle geraadpleeg het en voor wie hulle in aanbidding gebuig het. Dit sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie. Dit sal mis word op die grond. Die dood sal verkieslik wees bo die lewe vir die res, almal wat oorbly van hierdie bose geslag op al die oorblywende plekke waarheen Ek hulle verdryf het,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Jy moet vir hulle sê, ‘so sê die Here: “Sal mense val en nie weer opstaan nie? Of sal iemand wegdraai en nie weer terugdraai nie? Waarom is hierdie volk, hierdie Jerusalem afvallig, met 'n blywende afvalligheid? Hulle hou vas aan misleiding, hulle weier om terug te draai. Ek het aandagtig geluister en gehoor dat wat hulle sê, nie reg is nie. Niemand het berou oor sy boosheid, deur te sê, ‘Wat het ek gedoen?’ nie. In hulle vaart draai elkeen weg, soos 'n perd wat die geveg instorm. Selfs die ooievaar in die lug ken sy vasgestelde tye, tortelduiwe, swaeltjies en kraanvoëls hou by die tyd van hulle koms, maar my volk ken nie die reëls van die Here nie. Hoe kan julle dan sê, ‘Ons is wys, die Here se wet is by ons’? Kyk, skrywers se leuenagtige pen het dit leuens gemaak. Wyses sal beskaamd staan, verslae wees en gevange geneem word. Kyk, hulle het die Here se woord verwerp. Watter soort wysheid het hulle dan? Daarom gee Ek hulle vroue aan ander, en hulle landerye aan veroweraars; want klein en groot, almal maak onregverdige wins, van profeet tot priester, almal pleeg bedrog. Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op 'n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ maar daar is geen vrede nie. Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Nee! Erger nog, hulle skaam hulle hoegenaamd nie; om skaam te wees, dit ken hulle nie! Daarom sal hulle val saam met die gesneuweldes; in die tyd wanneer met hulle afgereken word, sal hulle tot 'n val kom,” ’ ” het die Here gesê. “ ‘ “Ek gaan hulle beslis wegvat,” ’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘ “Daar sal geen druiwe aan die wingerdstok wees nie, geen vye aan die vyeboom nie, en die blare sal verdor. Ek het dit aan die veroweraars gegee; hulle sal dit verwoes. ” ’ ” “ Waarom bly ons nog sit? Kom byeen! Laat ons in die versterkte stede ingaan, en daar omkom. Ja, die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons giftige water om te drink, omdat ons gesondig het teen die Here. Ons het gehoop op vrede, maar daar is niks goeds nie, op 'n tyd van genesing, maar kyk, daar is verskrikking. Van Dan af hoor ons die geproes van die vyand se perde; vir die harde gerunnik van hulle hingste bewe die hele land. Hulle kom in en verslind die land met alles daarin, ook dorpe met die inwoners daarin.” “ ‘ “Ja, kyk, Ek stuur slange, kobras, onder julle in waarteen geen beswering bestaan nie. Hulle sal julle byt,” ’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘ “sonder dat daar genesing is.” ’ ” Droefheid oorval my; my hart is siek in my. Hoor daar! Die hulpgeroep van die dogter van my volk uit 'n ver land: “Is die Here nie in Sion nie? Is haar Koning nie in haar nie?” “ ‘ “Waarom tart hulle My met hulle gesnede beelde, met hulle vreemde, nietige afgode?” ’ ” “Die graanoes is verby, die someroes is agter die rug; maar ons, ons is nie gered nie!” Oor die ineenstorting van die dogter van my volk is ek gebroke. Ek is in rou, ontsetting het my aangegryp. Is daar dan nie balsem in Gilead nie, is daar nie 'n geneser nie? Ja, waarom vind die herstel van die dogter van my volk nie plaas nie? Ag, was my hele kop maar water, en my oog 'n fontein van trane, sodat ek dag en nag kon huil oor die gesneuweldes van die dogter van my volk! “Ag, was daar maar in die woestyn 'n oornagplek vir reisigers! Dan sou Ek my volk verlaat en van hulle af weggaan; want hulle pleeg almal egbreuk, hulle is 'n bende troueloses. Hulle span hulle tong soos 'n boog; met leuens, en nie met betroubaarheid nie, word hulle helde in die land. Ja, van boosheid na boosheid gaan hulle voort, en My ken hulle nie,” is die uitspraak van die Here. “Wees op julle hoede, elkeen vir sy vriend! Moenie enige broer vertrou nie; want elke broer is 'n bedrieër, en elke vriend gaan rond as 'n kwaadstoker. Elkeen verkul sy vriend; die waarheid praat hulle nie. Hulle rig hulle tonge af om leuens te praat. Hulle dwaal; hulle is nie in staat om terug te keer nie. Verdrukking volg op verdrukking, bedrog volg op bedrog; hulle weier om My te erken,” is die uitspraak van die Here. Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan hulle smelt en toets. Want wat anders kan Ek doen oor die dogter van my volk? Dodelike pyle is hulle tonge – dit uiter bedrog. Met sy mond praat iemand vrede met sy vriend, maar in sy binneste stel hy vir hom 'n hinderlaag. Sou Ek daaroor nie van hulle rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die Here. “Of sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?” Oor die berge sal Ek 'n geween, 'n treurlied aanhef, en oor die weivelde in die woestyn 'n klaaglied; want dit lê verskroei, sodat niemand daardeur trek nie, en die geluid van vee nie meer gehoor word nie. Die voëls in die lug, sowel as die diere, het gevlug, hulle het padgegee. “Ek gaan van Jerusalem klipstapels maak, 'n lêplek vir jakkalse; en die dorpe van Juda gaan Ek 'n woesteny maak, sonder inwoners.” Wie is die mens wat wys genoeg is om dit te verstaan, iemand met wie die mond van die Here gepraat het, sodat hy dit kan verduidelik? Waarom het die land ten gronde gegaan, lê dit verwoes soos 'n woestyn, sonder dat iemand daardeur trek? Die Here het geantwoord: “Omdat hulle my wet verlaat het wat Ek aan hulle voorgehou het, hulle nie na my stem geluister en my wet nie gevolg het nie, maar agter die verstoktheid van hulle eie harte en agter die Baäls aangeloop het, soos hulle voorouers hulle geleer het.” Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek laat hierdie volk wildeals eet en giftige water drink. Ek sal hulle verstrooi onder nasies wat hulle en hulle voorouers nie geken het nie, en Ek stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle vernietig het.” So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Wees verstandig en roep die klaagvroue, sodat hulle kom. Ontbied die kundige vroue, sodat hulle kom.” Hulle moet gou maak en oor ons 'n treurlied aanhef, sodat ons oë van trane vloei, en ons ooglede stroom van water; want die geluid van treursang word uit Sion gehoor: “Hoe is ons verwoes! Ons staan diep beskaamd, want ons moes die land verlaat, omdat hulle ons woonplekke platgeslaan het.” Ja, vroue, luister na die woord van die Here, en laat julle ore die woorde van sy mond inneem. Leer julle dogters 'n treurlied, vir mekaar 'n klaaglied: “Ja, die dood het deur ons vensters geklim; dit het ons vestings binnegedring deur kleuters wat in die strate en jong manne wat op die dorpspleine was, uit te roei.” “Sê, ‘Die volgende is 'n uitspraak van die Here: “Die lyke van mense sal soos mis op die oop veld lê, en soos gesnyde graan agter die snyer, sonder dat iemand dit bymekaarmaak.” ’ ” So sê die Here: “'n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, 'n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en 'n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek rekenskap sal eis van almal wat aan die voorhuid besny is – van Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete, en Moabiete, van al die woestynbewoners wat hulle slape skoonskeer. Want al dié nasies is eintlik onbesnede; maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.” Hoor die woorde wat die Here oor julle uitgespreek het, huis van Israel! So sê die Here: “Moenie die gebruike van die nasies aanleer nie; vir tekens aan die hemelruim moet julle nie bevrees wees omdat die nasies daarvoor bevrees is nie. Ja, die gebruike van die volke, dit is nietig; want hulle kap 'n boom in die bos af – die handewerk van 'n ambagsman met 'n byl. Met silwer en goud versier hulle dit, met spykers en hamers maak hulle dit stewig, sodat dit nie wankel nie. Die beelde is soos 'n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie 'n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.” Nie een is soos U nie, Here. U is groot, en u Naam is groot in krag. Wie sou nie vir U ontsag hê nie, Koning van die nasies? Ja, vir U is dit van pas, want onder al die wyses van die nasies en in al hulle koninkryke, is daar niemand soos U nie. In een opsig is hulle dom en dwaas: Die vermaning deur nietige afgode kom van 'n stuk hout! Die silwerbeslag word uit Tarsis gebring, die goud uit Ufas. Dit is die werk van 'n ambagsman; dit kom uit die hande van 'n goudsmid. Pers en purperrooi is die afgode se klere; dit is alles die werk van vaardige vakmanne. Maar die Here is waarlik God, Hy is die lewende God en ewige Koning. Vir sy grimmigheid bewe die aarde, en nasies kan sy verontwaardiging nie deurstaan nie. So moet julle vir hulle sê: “Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie, sal van die aarde af verdwyn, ja, onder hierdie hemel uit.” Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gevestig het deur sy wysheid, en deur sy insig die hemel oopgespan het – in sy stem, wanneer Hy dit laat hoor, is daar die gedruis van water in die hemel. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind vry uit sy voorraadkamers. Alle mense bewys hulleself dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd oor sy afgodsbeelde, want sy gietsels is bedrog – daar is nie asem in hulle nie. Hulle is nikswerd afgode, bespotlike maaksels. In die tyd wanneer daar met hulle afgereken word, gaan hulle tot niet. Die erfdeel van Jakob is nie soos hulle nie; want Hy is die Een wat alles vorm, en Israel is die stam van sy erfenis – die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam. Tel jou bondel van die grond af op, Jerusalem, jy wat onder beleg woon! Want so sê die Here: “Kyk, Ek slinger hierdie keer die inwoners van die land weg. Ek het hulle vasgekeer, sodat hulle gevind kan word.” Wee my! Ek het ineengestort! Ongeneeslik is my wond! Ek is die een wat gedink het: Dit is nou eenmaal my lyding dié, en ek moet dit dra. Maar my tent is verwoes, en al my toue is gebreek. My kinders het van my af weggegaan; hulle is nie meer daar nie. Daar is nie meer iemand oor wat my tent kan oopsprei nie, wat my tentdoeke regop kan kry nie. Ja, die herders het gewys dat hulle dom is; hulle het die Here nie geraadpleeg nie. Daarom kon hulle nie slaag nie, en is hulle hele kudde uiteengejaag. 'n Gerug klink op! Kyk, dit kom! 'n Groot gedreun kom uit 'n land in die noorde om Juda se dorpe 'n woesteny te maak, 'n lêplek vir jakkalse. Ek weet, Here, dat 'n mens nie oor sy lewenspad beskik nie, dat iemand nie, terwyl hy loop, sy eie voetstappe bepaal nie. Straf my, Here, maar regverdig, nie in u toorn nie, sodat U my nie uitwis nie. Stort u woede uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob verslind, hulle het hom verslind en vernietig – sy weiding het hulle verwoes. Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: “Luister na die woorde van hierdie verbond, en praat met die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. Sê vir hulle, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Vervloek is die mens wat nie luister na die woorde van hierdie verbond nie, dit wat Ek julle voorouers beveel het op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die ystersmeltoond, uitgelei het met die woorde, ‘Luister na my stem en tree op ooreenkomstig alles wat Ek julle beveel. Julle sal dan my volk wees, en Ek sal julle God wees, sodat Ek die eed gestand kan doen wat Ek vir julle voorouers afgelê het – om vir hulle 'n land te gee wat oorloop van melk en heuning, soos dit vandag is.’ ” ’ ” Ek het daarop geantwoord en gesê: “•Amen, Here! ” Die Here het vir my gesê: “Roep al hierdie woorde uit in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem, ‘Luister na die woorde van hierdie verbond en voer dit uit! Want Ek het julle voorouers uitdruklik gewaarsku, vanaf die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, tot vandag toe. Ek het hulle aanhoudend gewaarsku met die woorde: “Luister na my stem!” Maar hulle het nie geluister nie, en nie hulle ore oopgemaak nie. Elkeen van hulle het die verstoktheid van sy bose hart bly volg. Toe het Ek al die vervloekings van hierdie verbond wat Ek hulle beveel het om uit te voer, maar wat hulle nie uitgevoer het nie, oor hulle gebring.’ ” Die Here sê toe vir my: “Daar is 'n sameswering ontdek by die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. Hulle het teruggekeer na die sondeskuld van hulle eerste voorouers, wat geweier het om na my woorde te luister; dit is hulle wat agter ander gode aangeloop het om dié te dien. Die huis van Israel en die huis van Juda het my verbond verbreek wat Ek met hulle voorouers gesluit het.” Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan oor hulle teenspoed bring waaraan hulle nie sal kan ontsnap nie. Hulle sal na My roep om hulp, maar Ek sal nie na hulle luister nie. Die dorpe van Juda en die inwoners van Jerusalem sal dan gaan en om hulp roep na die gode vir wie hulle offers verbrand het, maar die gode sal hulle geensins kan verlos in die tyd van hulle teenspoed nie. Ja, net soveel dorpe as wat jy het, net soveel het jou gode geword, Juda. En net soveel strate as wat Jerusalem het, soveel is die altare wat julle opgerig het vir die skandelike afgod – altare om vir Baäl offers te verbrand. En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, want Ek luister nie wanneer hulle na My roep vanweë die ramp wat hulle tref nie. “Watter reg het my beminde in my huis om 'n bose plan te smee? Kan geloftes en heilige offervleis jou vrywaar van teenspoed? Dan kon jy uitgelate wees!” “Skaduryke olyfboom met mooi gevormde vrugte,” het die Here jou genoem. Maar te midde van 'n groot gedruis sal Hy dit aan die brand steek, en sy lower sal onbruikbaar wees. Die Here, Heerser oor alle magte, wat jou geplant het, het 'n ramp oor jou aangekondig weens die boosheid van die huis van Israel en die huis van Juda, die boosheid wat hulle gepleeg het om My te tart, deur vir Baäl offers te verbrand. Die Here self het my ingelig, sodat ek kon weet. Toe het U my laat sien waarmee hulle besig is. Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie geweet dat dit teen my is wat hulle planne beraam nie: “Laat ons die boom en sy lewensap vernietig; laat ons hom afsny van die land van die lewendes, sodat sy naam nie meer onthou word nie.” Maar Here, Heerser oor alle magte, regverdige Regter wat hart en niere toets, laat ek u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou. Daarom, so sê die Here oor die manne van Anatot wat jou lewe soek en sê, “Jy mag nie profeteer in die Naam van die Here nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie,” ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan van hulle rekenskap eis: Die jong manne sal sterf deur die swaard; hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. Daar sal vir hulle niemand oorbly nie, want Ek bring onheil oor die manne van Anatot in die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word.” U het die reg aan u kant, Here, as ek met U 'n regstryd sou voer; tog wil ek oor regsake met U praat: Waarom is die pad van goddeloses voorspoedig, waarom leef almal wat verraderlik optree, rustig? U het hulle geplant; ook het hulle wortel geskiet, hulle het uitgespruit, selfs vrugte gedra. U is naby hulle monde, maar ver van hulle binneste af. Maar U, Here, U ken my; U sien my en U toets of my hart by U is. Vat hulle weg soos kleinvee wat vir slag bestem is; sonder hulle af vir die dag van slagting. Hoe lank sal die land bly verdor, die plante van die hele veld verdroog? Vanweë die boosheid van hulle wat daarin woon, kwyn die diere en voëls weg. Hulle sê immers: “Hy sal ons einde nie sien nie.” “As jy saam met mense te voet hardloop, en hulle maak jou moeg, hoe sal jy dan met perde meeding? In 'n veilige gebied is jy vol selfvertroue; maar hoe sal jy vaar in die trots van die Jordaan? Want ook jou stamgenote, jou eie familie, ook hulle het verraderlik teen jou opgetree; ook hulle roep hardop agter jou aan. Moet hulle nie glo wanneer hulle vriendelik met jou praat nie.” “Ek het my huis verlaat; Ek het my eiendom prysgegee; Ek het my sielsbeminde oorgegee in die greep van haar vyande. My eiendom het vir My geword soos 'n leeu in die bos; sy het haar stem teen My verhef; daarom het Ek 'n weersin in haar gekry. My persoonlike eiendom is 'n boerplek van hiënas, omring deur roofvoëls! Gaan maak al die wilde diere bymekaar, laat hulle kom om te verslind! Talle herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk grond vertrap. Hulle het my kosbare stuk grond 'n verlate woestyn gemaak. Dit is 'n woesteny gemaak; verlate treur dit voor My. Die hele land lê verlate, omdat daar niemand is wat hulle daaraan steur nie. Oor al die kaal hoogtes in die woestyn kom verwoesters.” Ja, die swaard van die Here verteer die land van hoek tot kant. Daar is geen vrede vir enige vlees nie. Hulle het koring gesaai, maar dorings geoes; hulle het hulleself uitgeput, maar niks daarby gebaat nie. Staan beskaamd oor julle opbrengs, vanweë die brandende toorn van die Here! So sê die Here: “Wat al die slegte buurvolke betref, hulle wat skade aanrig aan die eiendom wat Ek aan my volk Israel as erfenis gegee het, kyk, Ek gaan hulle uit hulle grondgebied uitruk, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde uitruk. Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm en hulle laat terugkeer, elkeen na sy eiendom, en elkeen na sy grond. As die ander volke die paaie van my volk goed leer ken, deur 'n eed af te lê in my Naam met die woorde, ‘So waar as die Here leef’ – soos hulle my volk geleer het om by Baäl te sweer – sal hulle in die midde van my volk gevestig word. Maar as hulle nie luister nie, sal Ek daardie nasie heeltemal uitruk en tot niet maak,” is die uitspraak van die Here. So het die Here vir my gesê: “Gaan koop vir jou 'n lendedoek van linne en bind dit om jou heupe. Moet dit nie in water laat kom nie.” Ek het toe die lendedoek gekoop, volgens die opdrag van die Here, en dit om my heupe gebind. Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: “Neem die lendedoek wat jy gekoop het, wat om jou heupe is. Maak gereed en gaan na die Perat, en steek dit daar in 'n rotsskeur weg.” Ek het gegaan en dit by die Perat weggesteek soos die Here my beveel het. Ná verloop van baie dae het die Here vir my gesê: “Maak gereed, gaan na die Perat en gaan haal die lendedoek wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.” Ek het toe na die Perat gegaan, gegrawe en die lendedoek uit die plek gehaal waar ek dit weggesteek het. En kyk, die lendedoek het tot niet gegaan; dit het vir niks meer gedeug nie. Toe het die woord van die Here tot my gekom: “So sê die Here, ‘Net so sal Ek die hoogmoed van Juda en die buitengewone hoogmoed van Jerusalem tot niet maak. Hierdie slegte volk, wat weier om na my woorde te luister, wat volhard in die verstoktheid van hulle harte, en agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig, sal word soos hierdie lendedoek wat vir niks meer deug nie. Ja, soos die lendedoek om die heupe van 'n man vassit, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat vassit,’ is die uitspraak van die Here, ‘om vir My 'n volk te wees, 'n roem, 'n lof en 'n sieraad. Maar hulle het nie geluister nie.’ “Sê dan vir hulle hierdie woorde, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Elke kruik moet met wyn gevul word.” ’ Hulle sal vir jou sê, ‘Weet ons dan nie baie goed dat elke kruik met wyn gevul moet word nie?’ Dan moet jy hulle antwoord, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan al die inwoners van hierdie land, en die konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sal sit, en die priesters en die profete, en al die inwoners van Jerusalem vul met dronkenskap. Ek sal hulle stukkend stamp, die een teen die ander, vaders en kinders saam,” ’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘ “Ek sal geen deernis hê nie, hulle nie jammer kry of My oor hulle ontferm deur hulle nie te vernietig nie.” ’ ” Luister, gee aandag! Moenie hovaardig wees nie, want die Here praat. Bewys eer aan die Here julle God, voordat Hy dit donker maak, voordat julle oor julle eie voete val in die skemerte op die berge. Julle sal wag op lig, maar Hy sal dit stikdonker laat word; Hy sal dit 'n diepe duisternis maak. Maar as julle nie hierna luister nie, sal ek in geheime plekke uit my hart huil oor julle hoogmoed. My oë sal bitterlik ween, en wegvloei in trane, omdat die kudde van die Here gevange geneem sal word. Sê vir die koning en die koninginmoeder: “Gaan sit op die grond, want julle sierlike krone het van julle koppe afgekom. Die dorpe van die Negev is oorgelewer, en niemand kan hulle bevry nie; Juda in sy geheel is weggevoer in ballingskap – volledig weggevoer. Kyk goed, Jerusalem! Sien hulle wat uit die noorde kom raak! Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige kleinvee? Wat sal jy sê as die vyand mense oor jou aanstel wat jy self geleer het – stamhoofde as gesagvoerders oor jou? Sal pyne jou nie beetpak soos vir 'n vrou wat geboorte gee nie? Jy sal in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Dit is oor jou groot sondeskuld dat jou kleed se some opgelig, jou hakskene geweld aangedoen is. Kan 'n Kussiet sy velkleur verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sou ook julle in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen. “ Ek sal julle verstrooi soos kaf wat weggewaai word deur 'n woestynwind. Dit is jou lot, die deel wat Ek vir jou afgemeet het,” is die uitspraak van die Here, “omdat jy My vergeet het en op leuens vertrou het. Ja, op my beurt sal Ek jou kleed se some oplig tot oor jou gesig, sodat jou skaamte gesien word. O, jou owerspel, jou gerunnik, jou skandalige hoerery! Op die heuwels in die veld, het Ek jou verfoeilike dade gesien. Wee jou, Jerusalem! Jy sal nie rein word nie. Hoe lank sal dit nog duur?” Die woord van die Here wat tot Jeremia gekom het na aanleiding van die groot droogte. “Juda treur, en sy poorte kwyn weg; die mense sit in rouklere op die grond, 'n gejammer styg van Jerusalem af op. Hulle vername mense stuur hulle onderhoriges om water te gaan haal. Hulle kom by die kuile, maar kry geen water nie; hulle kom terug met leë houers; hulle staan beskaamd en voel verneder; hulle bedek hulle koppe. Vanweë die grond, wat uitmekaar bars omdat dit nie gereën het nie, staan die landbouers beskaamd; hulle bedek hulle koppe. Ja, selfs wildsbokke in die veld lam, maar gooi die lammers weg, omdat daar geen groenigheid is nie. Wildedonkies staan op die kaal hoogtes; hulle snuif die lug soos jakkalse. Hulle oë raak dof, want daar is geen veldplante nie.” “ Al getuig ons sondeskuld teen ons, Here, tree op ter wille van u Naam! Ja, ons afvalligheid is erg; teen U het ons gesondig. Hoop van Israel, sy Verlosser in tyd van nood, waarom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net afdraai om te oornag? Waarom is U soos iemand wat onkant gevang is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, Here; U Naam is oor ons uitgeroep. Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!” So sê die Here oor hierdie volk: “Hulle is tog so lief om af te dwaal, hulle hou nie hulle voete in bedwang nie; die Here aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap oor hulle sondes eis.” Die Here het vir my gesê: “Moenie bid vir hierdie volk se welstand nie! Wanneer hulle vas, luister Ek nie na hulle klaagroep nie; en wanneer hulle •brandoffers en •graanoffers bring, aanvaar Ek hulle nie. Maar met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek 'n einde aan hulle maak.” Toe het ek gesê: “Ag, Here, my Heer, kyk, die profete sê vir hulle, ‘Julle sal geen swaard sien nie, en geen hongersnood lê vir julle voor nie, maar voortdurende vrede gee Ek vir julle op hierdie plek.’ ” Die Here het toe vir my gesê: “Dit is leuens wat die profete in my Naam profeteer. Ek het hulle nie gestuur nie en hulle nie opdragte gegee nie. Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is 'n vals visioen, sinlose waarsêery en 'n bedrogspul uit hulle eie harte wat hulle vir julle as profesieë opdis. Daarom, so sê die Here oor die profete wat in my Naam profeteer, terwyl Ek hulle nie gestuur het nie, hulle wat aanhou sê dat die swaard en hongersnood nie in hierdie land sal kom nie, ‘Deur die swaard en hongersnood sal daardie profete omkom. Die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi word deur hongersnood en die swaard. Maar daar sal niemand wees wat hulle begrawe nie. Dit geld vir hulle, hulle vroue, hulle seuns en dogters. Ek sal hulle eie boosheid oor hulle uitstort.’ “Jy moet vir hulle hierdie woorde sê, ‘My oë moet dag en nag vloei met trane, en nie tot rus kom nie; want deur 'n groot ineenstorting is sy gebreek – die jongvrou, die dogter van my volk – deur 'n uiters pynlike wond. As ek uitgaan na die veld – daar is die gesneuweldes deur die swaard! As ek die stad binnegaan – daar is die lyding van die hongersnood! Want sowel die profete as die priesters swerf rond in 'n land wat hulle nie ken nie.’ ” Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het U 'n hartgrondige afkeer in Sion? Waarom het U ons geslaan sonder dat daar vir ons genesing is? Ons het gehoop op vrede, maar daar was niks goeds nie, op 'n tyd van herstel, maar kyk, daar is net verskrikking. Ons erken ons goddeloosheid, Here, die sondeskuld van ons voorouers. Ja, ons het teen U gesondig. Moet ons nie verstoot nie, ter wille van u Naam; moenie u heerlike troon ontwy nie! Onthou tog – moenie u verbond met ons verbreek nie! Is daar onder die nietige afgode van die nasies enige een wat kan laat reën? Of kan die hemel vanself stortreëns gee? Is dit nie U nie, Here ons God? Ons wag op U, want U is die een wat dit alles gemaak het. Die Here het vir my gesê: “Al sou Moses en Samuel voor My staan, sou Ek niks vir hierdie volk voel nie. Stuur hulle weg uit my teenwoordigheid; laat hulle gaan! En as hulle vir jou vra, ‘Waarheen moet ons gaan?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê die Here: “Wie vir die dood bestem is, na die dood, wie vir die swaard bestem is, na die swaard, wie vir hongersnood bestem is, na die hongersnood, en wie vir die ballingskap bestem is, na die ballingskap!” ’ “Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle opkommandeer,” is die uitspraak van die Here, “die swaard om dood te maak, honde om weg te sleep, die voëls van die hemel en die diere van die aarde om te verslind en te verdelg. Ek sal van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskia, die koning van Juda – oor dit wat hy in Jerusalem gedoen het. ” “ Ja, wie sal hom oor jou ontferm, Jerusalem? Wie sal met jou meegevoel hê? Wie sal afdraai om te vra hoe dit met jou gaan? Jy is die een wat My versaak het,” is die uitspraak van die Here. “Jy het My die rug toegekeer. Toe het Ek my hand teen jou uitgesteek en jou vernietig. Ek was moeg daarvoor om jammer te kry. Ek het hulle met 'n hooivurk uitgewan in die poorte van die land. Ek het my volk kinderloos gemaak, hulle tot niet gemaak. Maar van hulle paaie draai hulle nie terug nie. My volk se weduwees is meer as die sand van die oseane. Ek bring oor my volk, oor die moeder van jong manne, 'n verwoester op die middaguur. Ek laat ontsteltenis, 'n verskriklike lot, haar onverwags oorval. Sy wat sewe in die wêreld gebring het, sal wegkwyn, sy sal na haar asem snak. Haar son sal ondergaan terwyl dit nog dag is; sy sal beskaamd staan, verleë wees. Wat van hulle oorbly, sal Ek aan die swaard oorgee voor hulle vyande,” is die uitspraak van die Here. Wee my! Ag, my moeder, dat u my in die wêreld gebring het – 'n man wat aankla en stryd voer met die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie, maar almal vervloek my. Die Here het gesê: “Waarlik, Ek sal jou onversetlik maak tot jou beswil; waarlik, Ek sal vir jou by die vyand intree in tye van onheil en nood. Kan iemand yster breek, yster uit die noorde, of koper? “ Jou rykdom en skatte sal Ek as buit gee, nie vir geld nie, maar as die prys vir al jou sondes, en as die prys vir jou hele grondgebied. Ek sal jou 'n slaaf maak van jou vyande in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur, aangesteek in my toorn, sal telkens teen julle opvlam.” U weet dit self, Here. Dink aan my, sien om na my, wreek my op my vervolgers. Moet my nie wegneem ter wille van u geduld met ander nie. Besef tog dat ek oor U bespotting moet verduur. Toe u woorde gevind is, het ek hulle verslind. U woorde was vir my 'n vreugde, 'n genot vir my hart. U Naam is immers oor my uitgeroep, Here, God van alle magte! Ek het nie in die kring van uitbundiges gesit nie, en ek was nie uitgelate nie. Vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met u verontwaardiging gevul. Waarom is my pyn onophoudelik? Waarom is my wond ongeneeslik, wil dit nie gesond word nie? U het inderdaad vir my geword soos 'n bedrieglike stroom water wat nie standhoudend is nie. Daarom, so sê die Here: “As jy jou bekeer, en Ek jou toelaat om jou te bekeer, sal jy in my diens staan. As jy woorde wat waardevol is, uitspreek, en nie wat waardeloos is nie, sal jy weer my segsman wees. Hulle moet na jou terugkeer – jy moet nie na hulle terugkeer nie. Ek sal jou vir hierdie volk 'n versterkte stadsmuur van koper maak. Hulle sal teen jou veg, maar nie die oorhand oor jou kry nie; want Ek is met jou om jou te verlos en jou te red,” is die uitspraak van die Here. “Ek sal jou red uit die hand van slegte mense, jou bevry uit die greep van geweldenaars.” Die woord van die Here het tot my gekom: “Jy mag nie vir jou 'n vrou neem nie, en jy mag nie seuns of dogters hê in hierdie plek nie.” Want so sê die Here oor die seuns en dogters wat in hierdie plek gebore word, en oor hulle ma's wat hulle in die lewe bring, en oor hulle pa's wat hulle in hierdie land verwek: “Aan dodelike siektes sal hulle sterf, maar daar sal nie oor hulle gerou word nie, en hulle sal nie begrawe word nie. Hulle sal mis op die landerye word. Of hulle sal deur die swaard en hongersnood omkom, en dan sal hulle lyke kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde.” Ja, so sê die Here: “Moenie 'n huis waar 'n begrafnismaaltyd gehou word, binnegaan nie; moenie daar ingaan om te rou nie, en moenie meegevoel met hulle betuig nie. Want Ek het my vrede aan hierdie volk onttrek,” is die uitspraak van die Here, “my troue liefde en ontferming. Groot en klein sal sterf in hierdie land, sonder om begrawe te word. Mense sal nie oor hulle rou nie, en niemand sal homself stukkend kerf of sy kop kaal skeer vir hulle nie. Mense sal nie vir hulle brood breek by 'n rouseremonie om iemand te troos oor 'n dooie nie. Mense sal hulle nie laat drink uit 'n beker as troos oor 'n vader of moeder nie. “'n Huis waar fees gevier word, mag jy nie binnegaan om saam met hulle aan te sit om te eet en te drink nie.” Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan in hierdie plek, voor julle oë en in julle lewensdae, die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, uitdoof. “ Wanneer jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak, sal hulle jou vra, ‘Waarom het die Here al hierdie groot rampe oor ons aangekondig? Wat is ons sondeskuld en wat is ons sonde waarmee ons teen die Here ons God gesondig het?’ Dan moet jy vir hulle sê, ‘Omdat julle voorouers My verlaat het,’ is die uitspraak van die Here, ‘en agter ander gode aangeloop het, hulle gedien en voor hulle in aanbidding gebuig het. Hulle het My verlaat; my wet het hulle nie nagekom nie. En julle het julle nog slegter gedra as julle voorouers. Kyk, julle volg elkeen die verstoktheid van sy bose hart deur nie na My te luister nie! Ek sal julle dan wegwerp uit hierdie land na 'n land wat julle en julle voorouers nie geken het nie. Daar sal julle ander gode dien, dag en nag, want Ek sal nie deernis met julle hê nie.’ “En tog: Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat daar nie meer gesê sal word, ‘So waar as die Here leef wat die Israeliete uit Egipteland laat optrek het nie!’ maar ‘So waar as die Here leef wat die Israeliete uit 'n land in die noorde laat optrek het, en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het!’ Ja, Ek sal hulle terugbring na hulle grond wat Ek aan hulle voorouers gegee het. “ Kyk, Ek gaan baie vissers ontbied,” is die uitspraak van die Here, “en hulle sal hulle vang. Daarna sal Ek baie jagters ontbied, en hulle sal op hulle jag maak op elke berg en elke heuwel, en selfs in die rotsskeure. Want my oë is gerig op al hulle paaie; dit is nie vir My verberg nie. Hulle ongeregtigheid is nie vir my oë verborge nie. Ek gaan hulle dubbeld laat betaal vir hulle sondeskuld en hulle sondes, omdat hulle my land ontheilig het met die geraamtes van hulle verfoeilike en afstootlike afgode; hulle het my eiendom vol gemaak daarmee.” Here, my sterkte, my beskutting, my toevlugsoord in die dag van nood, na U sal nasies kom van die uithoeke van die aarde af. Hulle sal sê: “Net leuens het ons voorouers geërf – nietige afgode, en onder hulle is daar nie een wat enigiets kan bied nie. ” “ Kan 'n mens vir hom gode maak? Dit is tog geen gode nie! “Daarom, kyk, hierdie keer gaan Ek hulle dit laat besef; Ek sal maak dat hulle my mag, my geweldige krag, leer ken, en hulle sal besef dat my Naam Here is.” “Die sonde van Juda is opgeteken met 'n ysterpen, met 'n diamantpunt; dit is ingegraveer op die tafels van hulle harte en op die horings van hulle altare. Net soos hulle aan hulle kinders dink, dink hulle aan hulle altare en asjeras by skaduryke bome op die hoë heuwels. My berg in die oop veld, jou rykdom, al jou skatte, sal Ek as buit gee – jou offerhoogtes in ruil vir die sonde in jou hele grondgebied. Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis wat Ek vir jou gegee het. Ek sal jou die slaaf van jou vyande maak in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur is aangesteek in my toorn – vir altyd sal dit brand.” So sê die Here: “Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg. Hy sal wees soos 'n jenewerstruik in die Araba; hy sal dit nie opmerk wanneer die goeie kom nie. Hy sal tuis wees op dor plekke in die woestyn, op brak grond waar niemand woon nie. Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. Hy sal wees soos 'n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In 'n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? “Ek, die Here, deursoek harte en toets niere, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade.” 'n Patrys wat eiers uitbroei wat sy nie gelê het nie, so is iemand wat rykdom verwerf, maar nie met eerlikheid nie. Teen die helfte van sy dae verlaat dit hom; en aan sy einde sal hy 'n dwaas wees. 'n Roemryke troon, verhewe van die begin af, is die plek van ons heiligdom. Here, die hoop van Israel, almal wat U verlaat, sal beskaamd staan. “Ja, wie van My af wegdraai, sal in grond geskryf word, omdat hulle die fontein van lewende water, die Here, verlaat het.” Maak my gesond, Here, en ek sal gesond wees. Verlos my, en ek sal verlos wees, want U is my lof. Kyk, hulle vra telkens vir my: “Waar bly die woord van die Here? Dit moet tog gebeur!” Ek, daarenteen, het nie by U daarop aangedring om nie 'n herder vir U te wees nie; die noodlottige dag begeer ek nie. U weet self wat oor my lippe gekom het; dit was in u teenwoordigheid. Moenie vir my 'n verskrikking word nie! U is my skuilplek op die dag van onheil. Laat hulle wat my vervolg, beskaamd staan; maar moenie dat ek die een is wat beskaamd staan nie! Laat hulle dié wees wat vreesbevange is; maar moenie dat ek die een is wat vreesbevange is nie! Bring oor hulle die dag van onheil, en verpletter hulle met 'n dubbele slag! So het die Here vir my gesê: “Gaan staan by die Volkspoort, waar die konings van Juda ingaan en uitgaan, en ook by al die poorte van Jerusalem, en sê vir hulle, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda, die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan: “So sê die Here, ‘Wees uit vrees vir julle lewens versigtig! Moenie vrag dra op die Sabbatdag en dit deur die poorte van Jerusalem inbring nie. Moenie 'n vrag uit julle huise dra op die Sabbatdag nie, en moenie enige werk doen nie. Hou die Sabbatdag heilig, soos Ek julle voorouers beveel het. Hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig deur nie te luister en nie vermaning te aanvaar nie. As julle goed na My luister,’ is die uitspraak van die Here, ‘deur nie 'n vrag deur die poorte van hierdie stad te dra op die Sabbatdag nie, en deur die Sabbatdag heilig te hou en nie enige werk op dié dag te doen nie, sal konings en bevelvoerders wat troonopvolgers van Dawid is, deur die poorte van hierdie stad ingaan – hulle wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle bevelvoerders, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem – en hierdie stad sal altyd bewoon word. Hulle sal uit die dorpe van Juda kom, uit die gebiede rondom Jerusalem, uit die landstreek Benjamin, uit die Sjefela, die bergland en die Negev, terwyl hulle •brandoffers, •maaltydoffers, •graanoffers en wierook bring, terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here. Maar as julle nie na My luister om die Sabbatdag heilig te hou nie, deur vrag te dra en by die poorte van Jerusalem in te gaan op die Sabbatdag, sal Ek 'n vuur aansteek in haar poorte wat die vestings van Jerusalem sal verteer en wat nie geblus sal word nie.’ ” ’ ” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: “Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe 'n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak. Toe het die woord van die Here tot my gekom: “Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. Een keer dreig Ek om 'n nasie en 'n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 'n Ander keer sê Ek oor 'n nasie en 'n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen. Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’ Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ” “ ‘ “Daarom,” so sê die Here, “Doen maar navraag by die nasies: Wie het van so iets gehoor? Die jongvrou Israel het 'n vreeslik afskuwelike ding gedoen. Verdwyn sneeu ooit van die rotsagtige hange van die Libanon? Of raak die vreemde koel water wat vloei ooit gedaan? Tog het my volk My vergeet en vir nuttelose afgode offers verbrand. Dié het hulle laat struikel op hulle paaie, op die ou roetes, sodat hulle op weë gegaan het wat nie opgevul is nie, om so hulle land 'n skrikbeeld, die rede vir 'n ewige gefluit te maak. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en sy kop skud. Soos 'n oostewind sal Ek hulle verstrooi voor vyande. Met die nek en nie met die gesig nie, sal Ek hulle aankyk op die dag van hulle teenspoed.” ’ ” Toe sê hulle: “Kom, laat ons planne beraam teen Jeremia, want onderrig deur priesters, raad van wyses en openbarings deur profete sal nie verlore wees nie. Kom ons val hom aan met die tong, sodat ons nie verder aandag aan sy woorde hoef te gee nie. ” Slaan ag op my, Here! Hoor wat sê my aanklaers! Moet goed dan met kwaad vergeld word? Want hulle het vir my 'n vangkuil gegrawe. Onthou dat ek voor U gestaan het om vir hulle 'n goeie woord te doen, om u woede van hulle af te keer. Daarom, gee hulle kinders oor aan hongersnood, lewer hulle oor aan die mag van die swaard. Laat hulle vroue kinderloos en weduwees word, en laat hulle mans slagoffers word van die pessiekte; laat hulle jongmanne in die oorlog deur die swaard verslaan word. Laat daar 'n geskreeu om hulp gehoor word uit hulle huise wanneer U onverwags troepe op hulle afstuur. Hulle het immers 'n vangkuil gegrawe om my te vang, en in die geheim vangnette vir my voete gestel. Maar U, Here, U ken hulle hele moorddadige plan teen my. Moet hulle sondeskuld nie bedek nie; hulle sondes moet U nie voor U uitwis nie. Laat hulle tot 'n val kom voor U; tree teen hulle op in die tyd van u toorn. So het die Here vir my gesê: “Gaan koop 'n kruik by 'n pottebakker; van die oudstes van die volk en die oudstes van die priesters moet by wees. Gaan dan uit na die Ben-Hinnomdal by die ingang na die Potskerfpoort en verkondig daar die woorde wat Ek vir jou sê. Jy moet sê, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek, sodat elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit. Want hulle het My verlaat, hierdie plek geskend en daarin offers verbrand vir ander gode wat hulle, hulle voorouers en die konings van Juda nie geken het nie. Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. Hulle het offerhoogtes vir Baäl gebou om hulle seuns as brandoffers vir Baäl te verbrand – iets wat Ek nie beveel of gesê het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “dat hierdie plek nie meer Tofet en Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. Ek sal Juda en Jerusalem se planne op hierdie plek verydel; Ek sal hulle deur die swaard voor hulle vyande laat val, en deur die hand van dié wat hulle lewens soek. Ek sal hulle lyke as voedsel gee vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. Ek sal hierdie stad 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit maak. Elkeen wat by haar verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en dogters laat eet; en hulle sal mekaar se vleis eet tydens die beleg en die teistering waarmee hulle vyande en die mense wat hulle lewens soek, hulle sal teister.” ’ “Jy moet dan die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gaan. Jy moet vir hulle sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Só sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek – soos mens die kleipot van 'n pottebakker breek, sodat dit nie weer heelgemaak kan word nie. In Tofet sal mense begrawe word weens gebrek aan begraafplek. Dit sal Ek aan hierdie plek en sy inwoners doen,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “om hierdie stad soos Tofet te maak. Die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal, wat onreinheid betref, soos die plek Tofet word – ja, al die huise waar hulle op die dakke offers verbrand het vir al die hemelliggame, en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.” ’ ” Jeremia het van Tofet af, waarheen die Here hom gestuur het om te profeteer, gekom en in die voorhof van die huis van die Here gaan staan. Hy het vir die hele volk gesê: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan oor hierdie stad en al haar dorpies al die onheil bring wat Ek oor haar uitgespreek het, want hulle was hardnekkig deur nie na my woorde te luister nie. ’ ” Die priester Pasgur, seun van Immer – hy was die hoofopsiener in die •tempel van die Here – het Jeremia hierdie woorde hoor profeteer. Pasgur het toe die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat by die boonste Benjaminpoort was in die huis van die Here. Toe Pasgur Jeremia die volgende dag uit die blok uithaal, sê Jeremia vir hom: “Die Here noem jou nie Pasgur nie, maar Verskrikking aan Alle Kante. Want so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan jou 'n verskrikking maak vir jouself en vir al jou vriende. Hulle sal deur die swaard van hulle vyande val terwyl jou oë dit aanskou. Die hele Juda gee Ek oor in die hand van die koning van Babilonië. Hy sal hulle na Babilonië wegvoer en met die swaard ombring. Ek sal al die voorraad van hierdie stad, al haar produkte, al haar kosbaarhede en al die skatte van die konings van Juda oorgee in die hand van hulle vyande. Hulle sal dit buitmaak, dit wegvat en na Babel neem. En jy, Pasgur, en al die inwoners van jou huis, sal in gevangenskap gaan. In Babel sal jy aankom, daar sal jy sterf, en daar sal jy begrawe word, jy en al jou vriende vir wie jy leuens geprofeteer het.’ ” U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U het my oorweldig, U het die oorhand gekry. Ek word uitgelag, die hele dag; almal dryf die spot met my. Want telkens wanneer ek praat, moet ek dit uitskreeu. “Geweld en verdrukking!” roep ek uit. Ja, die woord van die Here het vir my tot bespotting en hoon geword, die hele dag lank. Ek het al gesê: “Ek sal nie aan Hom dink nie, nie meer in sy Naam iets sê nie.” Maar dan word dit in my hart soos 'n vuur wat brand, vasgevang in my gebeente! Ek het my moeg gemaak om dit binne te hou, maar ek kon nie. Ja, ek het die geskimp van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante! Neem kennis! Ons sal dit bekend maak!” Al my sogenaamde vriende verwag my val: “Miskien kan hy mislei word, sodat ons die oorhand oor hom kan kry en ons op hom kan wreek.” Maar die Here is by my, soos 'n vreesaanjaende krygsheld. Daarom sal my vervolgers tot 'n val kom; hulle sal nie die oorhand kry nie. Hulle sal geheel en al beskaamd staan, want hulle sal nie slaag nie – 'n ewige vernedering wat nie vergeet sal word nie. Here, Heerser oor alle magte, U wat regverdiges toets, wat hart en niere deurskou, laat ek u wraak op hulle sien; want aan U het ek my regsaak toevertrou. Sing vir die Here! Loof die Here! Want Hy het die lewe van 'n behoeftige gered uit die hand van boosdoeners. Vervloek is die dag waarop ek gebore is! Mag die dag waarop my moeder my in die wêreld gebring het, nie geseënd wees nie! Vervloek is die man wat die nuus vir my vader gebring het: “'n Kind is vir jou gebore, 'n seun!” – iets wat hom baie bly gemaak het. Mag daardie man wees soos die stede wat die Here platgeslaan het sonder om jammer te wees. Mag hy uitroepe om hulp hoor in die môre, en oorlogskrete teen die middag, omdat hy my nie doodgemaak het in die baarmoeder, sodat my moeder my graf geword het, en haar baarmoeder ewig swanger gebly het nie. Waarom het ek ooit uit die baarmoeder uitgegaan – om swaarkry en verdriet te ervaar? Moet my dae in skande eindig? Dit is die woord van die Here wat van die Here af tot Jeremia gekom het toe koning Sedekia vir Pasgur, seun van Malkija, en die priester Sefanja, seun van Maäseja, na hom gestuur het met die woorde: “Raadpleeg asseblief namens ons die Here, want Nebukadresar, die koning van Babilonië, voer oorlog teen ons. Miskien sal die Here vir ons doen wat Hy in al sy wonders gedoen het, sodat Nebukadresar van ons af wegtrek.” Jeremia het vir hulle gesê: “So moet julle vir Sedekia sê, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan die oorlogswapens wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer teen die koning van Babilonië en die Galdeërs wat julle buite die stadsmuur beleër, teen julle draai. Ek sal hierdie wapens binne-in hierdie stad bymekaarmaak. Ek self sal teen julle oorlog voer met 'n uitgestrekte hand en 'n sterk arm, met toorn, woede en fel grimmigheid. Ek sal die inwoners van hierdie stad, mense sowel as diere, tref. Aan 'n verskriklike epidemie sal hulle sterf. En daarna,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek Sedekia, koning van Juda, sy amptenare en die volk, dié wat in hierdie stad oorgebly het ná die epidemie, die swaard en die hongersnood, oorgee in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, ja, in die hand van hulle vyande, in die hand van dié wat hulle lewens soek. Hy sal hulle verslaan met die skerpte van die swaard. Hy sal geen deernis met hulle hê, of hulle jammer kry of hom oor hulle ontferm nie.” ’ “En vir hierdie volk moet jy sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek hou vir julle die pad na die lewe en die pad na die dood voor: Die een wat in hierdie stad bly, sal deur die swaard of honger of die epidemie sterf, maar hy wat uitgaan en oorloop na die Galdeërs wat julle beleër, sal leef. Sy lewe sal hy vir homself as buit behou. Want Ek rig my gesig teen hierdie stad – ten kwade en nie ten goede nie,” is die uitspraak van die Here. “In die hand van die koning van Babilonië sal dit oorgegee word, en hy sal dit afbrand.” ’ “En vir die huis van die koning van Juda moet jy sê, ‘Hoor die woord van die Here, huis van Dawid! So sê die Here: “Spreek elke oggend reg en red dié wat beroof word uit die hand van verdrukkers; anders breek my woede uit soos 'n vuur en brand sonder dat iemand dit blus vanweë julle bose dade. Dit is Ek teen jou, jy wat oor die vallei troon – o, rots van die gelykte!” is die uitspraak van die Here, “julle wat sê, ‘Wie sal deurdring na ons, en wie sal ons skuilplekke binnedring?’ Ek gaan van julle rekenskap eis ooreenkomstig die vrug van julle dade,” is die uitspraak van die Here. “Ek gaan 'n vuur in haar bos aansteek, en dit sal alles rondom haar verteer.” ’ ” So sê die Here: “Gaan af na die koning van Juda se paleis; kondig hierdie woord daar aan en sê, ‘Hoor die woord van die Here, koning van Juda, wat op die troon van Dawid sit – jy en jou amptenare en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan. So sê die Here: “Laat reg en geregtigheid geskied, en red dié wat beroof word uit die hand van verdrukkers. •Vreemdelinge, vaderloses en weduwees moet julle nie mishandel of geweld aandoen nie, en onskuldige bloed moet julle nie vergiet in hierdie plek nie. Want as julle hierdie woord noukeurig uitvoer, sal konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sit, wat op strydwaens en op perde ry, deur die poorte van hierdie paleis ingaan – die koning, sy amptenare en sy volk. Maar as julle nie luister na hierdie woorde nie – by Myself lê Ek 'n eed af –” is die uitspraak van die Here, “sal hierdie paleis 'n puinhoop word.” ’ “ ‘Ja, so sê die Here oor die paleis van die koning van Juda: “Jy is vir my 'n Gilead, die kruin van die Libanon; maar Ek maak van jou 'n woestyn, en stede wat nie bewoon word nie. Ek sal stroperbendes volmag gee oor jou – elke man met sy wapens. Hulle sal die keur van jou seders afkap en in die vuur gooi. “ ‘ “ Baie nasies sal by hierdie stad verbygaan en vir mekaar vra, ‘Waarom het die Here so gemaak met hierdie groot stad?’ Dan sal geantwoord word, ‘Omdat hulle die verbond van die Here hulle God verlaat het en voor ander gode in aanbidding gebuig en hulle gedien het.’ “ ‘ “ Julle moenie huil oor die dooie nie, en moenie oor hom meegevoel betuig nie. Huil bitterlik oor hom wat weggegaan het; want hy sal nie weer terugkom nie, en nie weer sy geboorteland sien nie.” “ ‘ Ja, so sê die Here oor Sallum, seun van Josia, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josia koning geword en van hierdie plek af weggegaan het: “Hy sal nie weer terugkeer nie, maar op die plek waarheen hulle hom weggevoer het, daar sal hy sterf. Hierdie land sal hy nie weer sien nie. “ ‘ “ Wee hom wat sy huis herbou met onreg, en sy bokamers met onregverdigheid, wat sy medemens verniet laat werk en nie sy loon vir hom gee nie, wat sê, ‘Ek bou vir my 'n ruim paleis met lugtige bokamers;’ en dan vir hom sy vensters uitbreek, wat oorgetrek word met sederhout, helderrooi gekleur. Is jy 'n koning omdat jy meeding in die gebruik van sederhout? Jou vader, het hy nie maar net geëet en gedrink, en reg en geregtigheid beoefen nie? Toe het dit met hom goed gegaan. Hy het die reg van magteloses en behoeftiges gehandhaaf – toe het dit goed gegaan. Is dit nie wat dit is om My te ken nie?” ’ is die uitspraak van die Here. “Maar jou oë en jou hart is gerig op niks anders as jou onregverdige wins nie, en op die bloed van die onskuldige – om dit te vergiet, en op onderdrukking en afpersing – om dit uit te voer. “ ‘ “Daarom,” so sê die Here oor Jojakim, seun van Josia, die koning van Juda, “Hulle sal nie vir hom die klaaglied ‘Helaas, my broer! Helaas, my suster!’ aanhef nie. Hulle sal nie vir hom die klaaglied ‘Helaas, my heer! Helaas, majesteit!’ aanhef nie. Hy sal begrawe word soos 'n donkie – weggesleep en weggegooi buite die poorte van Jerusalem. “ ‘ “Bestyg die Libanon, roep om hulp, roep hard in Basan! Roep om hulp vanaf die Abarim-hoogland, want al jou minnaars is verpletter. Ek het jou aangespreek toe jy sorgeloos was. Jy het gesê, ‘Ek sal nie luister nie.’ Dit was jou lewenspad van jou jeug af, dat jy nie na my stem geluister het nie. Al jou herders – die wind sal hulle wegvoer, en jou minnaars – in gevangenskap sal hulle gaan. Ja, dan sal jy beskaamd staan en verneder word oor al jou boosheid. “ ‘ “ Jy wat in die Libanon woon, wat in seders nesmaak, hoe sal jy bejammer word wanneer geboortepyne vir jou aanbreek, pyn soos 'n vrou wat geboorte gee! “ ‘ “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Here, “al was Gonja, seun van Jojakim, koning van Juda, 'n seëlring aan my regterhand, sal Ek jou daar afruk. Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jou lewe soek, in die hand van hulle vir wie jy bevrees is – in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, en in die hand van die Galdeërs. Ek sal jou en jou moeder wat aan jou lewe geskenk het, ver wegwerp na 'n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterf. En die land waarheen hulle sal verlang om terug te keer – daarheen sal hulle nie terugkeer nie.” ’ ” Is hierdie man, Gonja, 'n afgekeurde stuk erdewerk wat gebreek word, of 'n houer waarvan niemand hou nie? Waarom is hy en sy nageslag weggewerp, weggeslinger na 'n land wat hulle nie ken nie? Land, land, land, hoor die woord van die Here! So sê die Here: “Skryf hierdie man op as kinderloos, as 'n man wat nie sukses sal behaal in sy lewensdae nie; want uit sy nageslag sal niemand daarin slaag om op die troon van Dawid te sit en weer oor Juda te regeer nie. “Wee die herders wat die kleinvee van my weiveld ten gronde laat gaan en hulle uitmekaarjaag,” is die uitspraak van die Here. “Daarom, so sê Ek, die Here, die God van Israel, oor die herders wat my volk moet laat wei, ‘Dit is julle wat my kleinvee uitmekaar gejaag en verdryf het. Julle het nie vir hulle verantwoordelikheid aanvaar nie. Kyk, Ek gaan julle tot verantwoording roep oor julle bose dade,’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘Maar Ek self sal dié wat oor is van my kleinvee bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het, en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld. Dan sal hulle vrugbaar wees en vermeerder. En Ek sal herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle laat wei. Hulle sal nie meer bang of verskrik wees of vermis word nie,’ ” is die uitspraak van die Here. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid 'n regverdige loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf. In sy dae sal Juda verlos word, en Israel sal veilig woon. En dit sal sy naam wees wat hy genoem word, ‘Die Here is ons geregtigheid.’ ” “Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer hulle nie meer sal sê, ‘So waar as die Here leef, wat die Israeliete uit Egipteland laat optrek het nie,’ maar, ‘So waar as die Here leef, wat die nageslag van die huis van Israel laat optrek en gebring het uit 'n land in die noorde, en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het.’ En hulle sal weer op hulle grond woon.” Oor die profete. My hart is gebreek in my binneste; my hele gebeente bewe. Ek het geword soos iemand wat dronk is, soos 'n man wat deur wyn oorweldig is – en dit vanweë die Here, vanweë sy heilige woorde. Want van egbrekers is die land vol, ja, vanweë vervloeking verdor die land; die weivelde van die woestyn verdroog. Wat hulle najaag, is boosheid, en hulle krag lê in wat nie reg is nie. “Ja, profeet sowel as priester is besoedel; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind,” is die uitspraak van die Here. “Daarom sal hulle pad vir hulle word soos glibberige plekke in die donker; hulle sal gestamp word en daarop val. Want Ek bring onheil oor hulle in die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word,” is die uitspraak van die Here. “ By die profete van Samaria het Ek iets onbehoorliks gesien: Hulle het in die naam van Baäl geprofeteer en my volk Israel laat afdwaal. Maar by die profete van Jerusalem het Ek iets afskuweliks gesien: Hulle pleeg egbreuk en leef 'n leuen; hulle sterk die hande van boosdoeners, sodat niemand wegdraai van sy boosheid nie. Hulle almal het vir My geword soos Sodom, en die inwoners soos Gomorra.” Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, oor die profete: “Kyk, Ek laat hulle wildeals eet, en laat hulle giftige water drink; want van die profete van Jerusalem af het goddeloosheid uitgegaan na die hele land.” So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Moenie luister na die woorde van die profete, wat hulle vir julle profeteer nie; hulle gee julle vals hoop. Visioene uit hulle eie hart verkondig hulle – uit die mond van die Here kom dit nie. Hulle hou aan sê vir dié wat My verag, ‘Die Here het gesê: Vrede sal daar vir julle wees!’ En vir elkeen wat die verstoktheid van sy hart volg, vir dié sê hulle, ‘Onheil sal julle nie tref nie!’ Maar wie het gestaan in die vertroulike vergadering van die Here? Wie het sy woord beleef en gehoor? Wie het aandagtig geluister na sy woord en dit gehoor? Daar kom die Here se stormwind! Woede het losgebreek – 'n werwelstorm! Dit kolk bo die koppe van goddeloses. Die toorn van die Here sal nie bedaar nie, totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer, dit tot stand gebring het. Aan die einde van die dae sal julle dit ten volle verstaan. Ek het nie die profete gestuur nie, maar hulle hardloop. Ek het nie met hulle gepraat nie, maar hulle profeteer. As hulle in my vertroulike vergadering gestaan het, sou hulle my volk my woorde laat hoor en hulle laat omdraai het van hulle bose pad en van hulle bose dade. “Is Ek net 'n God wat naby is,” is die uitspraak van die Here, “en nie ook 'n God wat ver is nie? Of kan iemand in geheime plekke wegkruip, en Ek hom nie sien nie? ” is die uitspraak van die Here. “Vul Ek nie die hemel en die aarde nie?” is die uitspraak van die Here. “Ek het gehoor wat die profete sê, hulle wat in my Naam leuens profeteer deur te sê, ‘Ek het gedroom, ek het gedroom!’ Hoe lank sal dit voortbestaan in die harte van die profete wat leuens profeteer, wat die misleiding van hulle eie harte profeteer, hulle wat daarop uit is om my volk my Naam te laat vergeet met hulle drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorouers my Naam vergeet het deur Baäl? Die profeet wat 'n droom het, moet die droom vertel; maar wie my woord het, moet my woord betroubaar verkondig. Hoe vergelyk strooi met gedorste graan?” is die uitspraak van die Here. “Is my woord nie so nie – soos 'n vuur,” is die uitspraak van die Here, “soos 'n hamer wat rots stukkend kap? Daarom, dit is Ek teen die profete,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat my woorde by mekaar steel! Dit is Ek teen die profete,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat hulle tonge gebruik en verklaar, ‘Dit is 'n uitspraak!’ Dit is Ek teen hulle wat vals drome as profesieë voorhou,” is die uitspraak van die Here, “dit oorvertel, en my volk laat afdwaal met hulle leuens en roekeloosheid. Dit is nie Ek wat hulle gestuur en hulle die opdrag gegee het nie. Hulle hou hoegenaamd geen voordeel in vir hierdie volk nie,” is die uitspraak van die Here. “As hierdie volk of 'n profeet of priester vir jou vra, ‘Wat is die godspraak van die Here?’ moet jy vir hulle sê, ‘Watter godspraak? Ek gee julle prys – dit is die uitspraak van die Here. ’ En die profeet of priester of die volk wat sê, ‘godspraak van die Here! ’ – Ek sal van daardie man en sy huis rekenskap eis. So moet julle elkeen vir sy vriend en vir sy volksgenoot sê, ‘Wat het die Here geantwoord?’ of ‘Wat het die Here gesê?’ Maar van ‘godspraak van die Here ’ mag julle nie weer melding maak nie. Want vir elkeen word sy eie woord die godspraak. Julle verdraai die woorde van die lewende God, die Here, Heerser oor alle magte, ons God. So moet jy vir die profeet vra, ‘Wat het die Here jou geantwoord?’ of ‘Wat het die Here gesê?’ En as dit ‘godspraak van die Here ’ is wat julle bly vra – daarom, so sê die Here, omdat julle hierdie uitdrukking ‘godspraak van die Here ’ gebruik, al het Ek 'n boodskapper na julle gestuur met die woorde, ‘Julle mag nie sê “godspraak van die Here ” nie,’ daarom – kyk, Ek, Ek gaan julle beslis vergeet. Ek gaan julle en die stad wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, prysgee – weg uit my teenwoordigheid. Ek sal ewige skande oor julle bring, ewige vernedering wat nie vergeet sal word nie.” Die Here het my laat sien: Kyk, daar is twee mandjies met vye neergesit voor die •tempel van die Here. Dit was nadat Nebukadresar, die koning van Babilonië, Jegonja, seun van Jojakim, die koning van Juda, die •hoë amptenare van Juda, die ambagsmanne en metaalwerkers uit Jerusalem in ballingskap weggevoer en hulle na Babel geneem het. Die een mandjie het baie goeie vye in gehad, soos vroeë vye; maar in die ander mandjie was baie slegte vye, wat nie meer geëet kon word nie omdat dit sleg was. Die Here het vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Vye – die goeie vye is baie goed en die slegtes baie sleg; dit kan nie meer geëet word nie omdat dit sleg is.” Toe het die woord van die Here tot my gekom: “ So sê die Here, die God van Israel, ‘Soos met hierdie goeie vye, so sal Ek die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek weggestuur het na die land van die Galdeërs, as goed beskou. Ek sal my oog welwillend oor hulle hou en hulle laat terugkeer na hierdie land. Ek sal hulle bou en nie afbreek nie; Ek sal hulle plant en nie uitruk nie. Ek sal aan hulle harte gee om My te ken, dat Ek die Here is. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees; want hulle sal na My terugkeer met hulle hele hart. “ ‘Maar soos die slegte vye wat nie meer geëet kan word nie omdat dit sleg is,’ ja, so sê die Here, ‘net so sal Ek maak met Sedekia, die koning van Juda, sy hoë amptenare en die res van Jerusalem, met hulle wat oorgebly het in hierdie land en hulle wat in Egipteland woon. Ek sal hulle 'n toonbeeld van verskrikking, van rampspoed maak – vir al die koninkryke van die aarde, 'n bespotting en 'n spreuk, 'n spotnaam en 'n vervloeking, op al die plekke waarheen Ek hulle verdryf. Ek sal die swaard, die hongersnood en pessiekte onder hulle instuur, totdat hulle volledig uitgeroei is, weg van die grond wat Ek aan hulle en hulle voorouers gegee het.’ ” Dit is die woord wat tot Jeremia gekom het oor die hele volk van Juda, in die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda. Dit was in die eerste regeringsjaar van Nebukadresar, koning van Babilonië, dat die profeet Jeremia met die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem gepraat het: “ Vanaf die dertiende regeringsjaar van Josia, seun van Amon, koning van Juda, tot op hierdie dag, drie-en-twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het aanhoudend met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. Die Here het al sy dienaars, die profete, aanhoudend na julle gestuur, maar julle het nie geluister nie. Julle het nie julle ore oopgemaak om te luister nie. Die boodskap was, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, weg van julle bose dade, sodat julle kan bly woon op die grond wat die Here van altyd af en vir altyd aan julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig nie! Moet My nie tart met julle handewerk nie, sodat Ek julle nie kwaad aandoen nie. Maar julle het nie na My geluister nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘sodat julle My getart het met julle handewerk, tot julle eie nadeel.’ Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Omdat julle nie na my woorde geluister het nie – kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die noorde ontbied,’ is die uitspraak van die Here, ‘ook Nebukadresar, koning van Babilonië, my dienskneg, en Ek sal hulle bring na hierdie land en sy inwoners, en na al die omliggende nasies. Ek sal hulle met die banvloek tref, en hulle 'n skrikbeeld maak, die rede vir 'n gefluit, en puinhope vir altyd. Ek sal by hulle die klank van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geskuur van maalklippe en die lig van lampe. Hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babilonië sewentig jaar lank dien. “ ‘Maar as die sewentig jaar verby is,’ is die uitspraak van die Here, ‘sal Ek oor hulle sondeskuld rekenskap eis van die koning van Babilonië en van daardie nasie, en van die land van die Galdeërs. Ek sal dit vir altyd woestenye maak. Ek sal oor hierdie land al my woorde wat Ek daaroor uitgespreek het, in vervulling laat gaan.’ ” Dit verwys na alles wat geskryf staan in hierdie •boekrol, en wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies. “ ‘Ja, ook die Galdeërs sal slawe wees van baie nasies en groot konings. Ek sal hulle vergeld ooreenkomstig hulle dade en hulle handewerk.’ Ja, so het die Here, die God van Israel, vir my gesê, ‘Neem hierdie beker met die wyn van woede uit my hand en laat al die nasies na wie Ek jou sal stuur, daaruit drink. Hulle sal drink en slinger en waansinnig raak, vanweë die swaard wat Ek onder hulle gaan instuur.’ ” Ek het toe die beker uit die hand van die Here geneem, en al die nasies na wie die Here my gestuur het, laat drink: Jerusalem en die stede van Juda, haar konings en •hoë amptenare – om daarvan 'n puinhoop, 'n skrikbeeld, die rede vir 'n gefluit en 'n vervloeking te maak, soos dit vandag is; die farao, koning van Egipte, sy dienaars, sy hoë amptenare, sy hele volk en die hele gemengde bevolking; al die konings van die land Us; al die konings van die land van die Filistyne – Askelon, Gasa en Ekron, en dié wat oorgebly het in Asdod; Edom, Moab en die Ammoniete; al die konings van Tirus; al die konings van Sidon; die konings van die kuslande oorkant die see; Dedan, Tema en Bus – almal wat die slape skoonskeer, al die konings van Arabië; al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon; al die konings van Simri; al die konings van Elam en al die konings van Medië; al die konings van die noorde, dié wat naby en dié wat ver van mekaar af is. Ja, dit geld vir al die koninkryke van die wêreld oor die hele oppervlakte van die aarde. Die koning van Sjesjag sal ná hulle drink. “Jy moet vir hulle sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Drink, word dronk, bring op, val neer sodat julle nie weer opstaan nie, vanweë die swaard wat Ek onder julle instuur.” ’ Maar as hulle weier om die beker uit jou hand te neem en te drink, moet jy vir hulle sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Julle móét drink! Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met die onheil – sal julle dan enigsins vryspring? Julle sal nie vryspring nie, want Ek gaan 'n swaard oproep teen al die inwoners van die aarde,” ’ ” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “En jy, jy moet al hierdie woorde teen hulle profeteer. Jy moet vir hulle sê, ‘Die Here, uit die hoogte sal Hy brul, uit sy heilige woning sal Hy sy stem laat hoor. Hy brul geweldig teen sy blyplek. 'n Kreet soos van druiwetrappers hef Hy aan teen al die bewoners van die aarde. Krygsgeskreeu galm tot aan die einde van die aarde, want die Here kla die nasies aan, die vonnis geld alle mense; goddeloses gee Hy oor aan die swaard,’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, rampe tref nasie ná nasie; 'n groot storm steek op aan die uithoeke van die aarde.” ’ ” En dié wat deur die Here verslaan is, sal op daardie dag van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde lê. Oor hulle sal nie gerou word nie, en hulle sal nie bymekaargemaak of begrawe word nie. Hulle sal mis word op die grond. “ ‘ “Huil, herders, en roep om hulp! Rol in die as, maghebbers oor die kleinvee! Want vir julle het die dae aangebreek om geslag te word. Ek sal julle stukkend slaan, en julle sal val soos 'n kosbare houer.” ’ ” 'n Toevlugsoord sal vir die herders verlore wees, ook 'n uitkomkans vir die maghebbers oor die kleinvee. Hoor die geroep om hulp van die herders, die gehuil van die maghebbers oor die kleinvee, want die Here verwoes hulle weivelde. Die vreedsame weivelde word vernietig vanweë die brandende toorn van die Here. Soos 'n jong leeu het Hy sy lêplek verlaat; want hulle land het 'n woesteny geword vanweë die gewelddadige swaard, ja, vanweë sy brandende toorn. Aan die begin van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die Here gekom: “So sê die Here, ‘Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here, en sê vir al die stede van Juda wat kom om in die huis van die Here in aanbidding te buig, al die woorde wat Ek jou beveel het om vir hulle te sê. Moenie een woord weglaat nie. Miskien sal hulle luister en omdraai, elkeen weg van sy verkeerde pad. Dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen vanweë hulle bose dade. Sê vir hulle: “So sê die Here, ‘As julle nie na My luister nie – deur te leef volgens my wet wat Ek aan julle voorgehou het, en deur te luister na die woorde van my knegte, die profete, hulle wat Ek aanhoudend na julle stuur selfs al luister julle nie – sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en sal Ek hierdie stad 'n voorbeeld maak om as vervloeking te dien vir al die nasies van die wêreld.’ ” ’ ” Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor sê in die huis van die Here. Net toe Jeremia klaar alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir die hele volk te sê, het die priesters, die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: “Jy moet beslis sterf! Waarom het jy in die Naam van die Here geprofeteer, ‘Soos Silo sal hierdie huis word, en hierdie stad sal 'n puinhoop wees, sonder inwoners ’?” Die hele volk het toe teen Jeremia saamgekom in die huis van die Here. Toe die •hoë amptenare van Juda hierdie woorde hoor, het hulle van die paleis van die koning af opgegaan na die huis van die Here, en hulle het gaan sit by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here. Die priesters en profete sê toe vir die hoë amptenare en die hele volk: “Hierdie man moet die doodsvonnis kry, want hy het teen hierdie stad geprofeteer, soos julle met julle eie ore gehoor het.” Jeremia het egter al die hoë amptenare en die hele volk geantwoord: “Dit is die Here wat my gestuur het om teen hierdie huis en hierdie stad al die woorde wat julle gehoor het, te profeteer. Daarom, laat julle doen en late goed wees, en luister na die stem van die Here julle God, sodat die Here berou kan hê oor die onheil wat Hy oor julle aangekondig het. En wat my betref – kyk, ek is in julle hande, maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, bring julle onskuldige bloed oor julleself en oor hierdie stad en haar inwoners; want die waarheid is dat die Here my na julle gestuur het om ten aanhore van julle almal al hierdie woorde uit te spreek.” Toe sê die hoë amptenare en die hele volk vir die priesters en profete: “Hierdie man moet nie die doodsvonnis kry nie, want dit is in die Naam van die Here ons God dat hy met ons gepraat het.” Manne uit die oudstes van die land het toe opgestaan en vir die hele byeenkoms van die volk gesê: “Miga van Morêset het as profeet opgetree in die dae van Hiskia, koning van Juda. Hy het met die hele volk van Juda gepraat en gesê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Sion sal soos 'n stuk land omgeploeg word, Jerusalem sal puinhope word, en die tempelberg 'n oorgroeide heuwel.” ’ Het Hiskia, koning van Juda, en die hele Juda hom toe wel doodgemaak? Het Hiskia nie ontsag vir die Here gehad en die guns van die Here gesoek nie? En het die Here nie berou gehad oor die onheil wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om groot onheil oor onsself te bring.” Daar was ook 'n man wat in die Naam van die Here geprofeteer het, Uria, seun van Semaja, uit Kirjat-Jearim. Hy het teen hierdie stad en teen hierdie land profesieë uitgespreek wat ooreenkom met al die woorde van Jeremia. Toe koning Jojakim en al sy keurtroepe en die •aanvoerders sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uria het dit te hore gekom, bang geword, gevlug en in Egipte aangekom. Koning Jojakim het toe manne na Egipte gestuur; hy het Elnatan, seun van Agbor, en ander manne saam met hom, na Egipte gestuur. Hulle het Uria uit Egipte geneem en hom na koning Jojakim gebring. Dié het hom met die swaard neergevel en sy lyk in die begraafplek van gewone mense gegooi. Maar Agikam, seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgelewer is in die hand van die volk, en hulle hom nie kon doodmaak nie. Aan die begin van Sedekia, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: “So het die Here vir my gesê: Maak vir jou stroppe en skeie, en sit dit om jou nek; stuur dit dan na die koning van Edom, die koning van Moab, die koning van die Ammoniete, die koning van Tirus en die koning van Sidon deur die gesante wat in Jerusalem by Sedekia, koning van Juda, aangekom het. Beveel hulle om vir hulle heersers te sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “So moet julle vir julle heersers sê, Ek is die een wat deur my groot krag en uitgestrekte arm die aarde gemaak het, ook die mense en diere wat op die aarde is, en Ek gee dit aan wie Ek wil. En nou het Ek self al hierdie lande oorgegee in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, my dienskneg. Ja, Ek het selfs die wilde diere aan hom gegee om aan hom onderhorig te wees. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien, totdat ook vir sy land die tyd aanbreek en magtige nasies en groot konings hom verkneg. Maar die nasie of koninkryk wat nie aan hom, Nebukadnesar, die koning van Babilonië, onderhorig wil wees nie en sy nek nie onder die juk van die koning van Babilonië, insteek nie – met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek van daardie nasie rekenskap eis, is die uitspraak van die Here, totdat Ek hulle volledig in sy hand oorgegee het. Maar julle, moenie luister na julle profete, julle voorspellers, julle dromers, die lesers van voortekens of julle towenaars nie, hulle wat met julle praat en sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie.’ Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer, en dit sal daartoe lei dat julle van julle grond af verwyder word. Ek sal julle verdryf, en julle sal omkom. Maar die nasie wat sy nek onder die juk van die koning van Babilonië insteek en hom dien – Ek sal hulle op hulle grond laat bly, is die uitspraak van die Here, en hulle sal dit bewerk en daarop woon.” ’ ” Vir Sedekia, koning van Juda, het ek toe al hierdie woorde gesê: “Steek julle nekke onder die juk van die koning van Babilonië in, en dien hom en sy volk, sodat julle kan leef! Waarom moet julle, jy en jou volk, sterf deur die swaard, hongersnood en pessiekte, soos die Here gesê het oor die nasie wat die koning van Babilonië nie wil dien nie? Moenie luister na die woorde van die profete wat vir julle sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie,’ want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. Want Ek het hulle nie gestuur nie,” is die uitspraak van die Here, “en hulle profeteer vals in my Naam, wat daartoe sal lei dat Ek julle verdryf, en dat julle sal omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer.” Vir die priesters en hierdie hele volk het ek gesê: “So sê die Here, ‘Moenie luister na die woorde van julle profete nie, hulle wat vir julle profeteer: “Kyk, die voorwerpe van die huis van die Here sal nou vinnig teruggebring word uit Babel.” Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. Moenie na hulle luister nie; dien die koning van Babilonië, sodat julle kan leef. Waarom moet hierdie stad 'n puinhoop word?’ As hulle dan profete is, en as die woord van die Here by hulle is, moet hulle liewer by die Here, Heerser oor alle magte, pleit dat die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die Here en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, nie na Babel gaan nie. Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, oor die pilare, die See, die verskuifbare staanders en die res van die voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het, wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, nie weggevat het toe hy Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda, uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel saam met al die hoëlui van Juda en Jerusalem nie. Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, oor die voorwerpe wat oorgebly het in die huis van die Here en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, ‘Na Babel sal dit geneem word, en dit sal daar bly tot op die dag dat Ek daaraan aandag gee,’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘Dan sal Ek dit laat haal en dit terugbring na hierdie plek.’ ” In dieselfde jaar, aan die begin van Sedekia, koning van Juda, se regering, in die vyfde maand van die vierde jaar, het Gananja, seun van Assur, die profeet uit Gibeon, vir my in die huis van die Here, in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk, gesê: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Ek het die juk van die koning van Babilonië gebreek. Nog net twee jaar, dan gaan Ek al die voorwerpe van die huis van die Here wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit hierdie plek gevat en na Babel geneem het, na hierdie plek terugbring. Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, gaan Ek na hierdie plek terugbring,’ is die uitspraak van die Here, ‘want Ek sal die juk van die koning van Babilonië breek.’ ” Toe sê die profeet Jeremia vir die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here staan, ja, die profeet Jeremia sê toe: “Amen, mag die Here dit so doen! Mag die Here jou woorde wat jy geprofeteer het, vervul deur die voorwerpe van die huis van die Here en al die ballinge uit Babel terug te bring na hierdie plek. Maar hoor tog hierdie woord wat ek direk vir jou en ten aanhore van die hele volk sê: Die profete wat voor my en jou daar was in die ou tyd, het teen baie lande en teen groot koninkryke geprofeteer oor oorlog en rampe en pessiektes. Die profeet wat vrede profeteer, sal, as die woord van die profeet uitkom, bekend wees as 'n profeet wat werklik deur die Here gestuur is.” Die profeet Gananja het toe die skeie van die profeet Jeremia se nek afgehaal en dit gebreek. Gananja sê toe in die teenwoordigheid van die hele volk: “So sê die Here, ‘Net so sal Ek binne twee jaar die juk van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, breek, van die nekke van al die nasies af.’ ” Die profeet Jeremia het daarna sy koers gegaan. Maar die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat die profeet Gananja die skeie gebreek het van die nek van die profeet Jeremia af: “Gaan sê vir Gananja, ‘So sê die Here: “Skeie van hout het jy gebreek, maar in die plek daarvan het jy skeie van yster gemaak.” Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “'n Ysterjuk lê Ek op die nekke van al hierdie nasies om Nebukadnesar, die koning van Babilonië, te dien, en hulle sal hom dien. Selfs die wilde diere gee Ek aan hom.” ’ ” Die profeet Jeremia het toe vir die profeet Gananja gesê: “Luister tog, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie, maar jy laat hierdie volk op leuens vertrou. Daarom, so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan jou van die aardbodem af wegwerp. Jy gaan vanjaar nog sterf, omdat jy valshede oor die Here verkondig het.’ ” Die profeet Gananja het in daardie jaar, in die sewende maand, gesterf. Dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die res van die oudstes in ballingskap en na die priesters, die profete en die hele volk wat Nebukadnesar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel, nadat koning Jegonja, die koninginmoeder en die eunugs, die •hoë amptenare van Juda en Jerusalem, die vakmanne en metaalwerkers reeds uit Jerusalem vertrek het, deur bemiddeling van Elasa, seun van Safan, en Gemarja, seun van Gilkija, hulle wat deur Sedekia, koning van Juda, na Babel, na Nebukadnesar, die koning van Babilonië, gestuur is: So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: “Bou huise en bewoon dit; plant tuine aan en eet die vrugte daarvan! Neem vroue en verwek seuns en dogters, en kry vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, sodat hulle seuns en dogters kan kry. Word daar meer en moenie minder word nie. Bevorder die voorspoed van die stad waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het, en bid tot die Here vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed vir julle.” Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Moenie dat julle profete en die voorspellers in julle midde julle mislei nie, en moenie aandag gee aan die drome wat julle hulle laat droom nie. Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie,’ is die uitspraak van die Here. Ja, so sê die Here: “As sewentig jaar vir Babel verloop het, sal Ek aan julle aandag gee en my goeie belofte aan julle gestand doen, om julle na hierdie plek toe terug te bring. Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee. Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Ek sal My deur julle laat vind,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies en al die plekke waarheen Ek julle verdryf het,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle terugbring na die plek waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.” “Ek skryf dit omdat julle gesê het, ‘Die Here het vir ons profete in Babel laat opstaan.’ “ Ja, so sê die Here oor die koning wat op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap gegaan het nie – ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan die swaard, hongersnood en pessiekte onder hulle instuur. Ek gaan hulle maak soos verrotte vye wat nie meer geëet kan word nie, omdat dit te sleg is. Ek gaan hulle met die swaard, hongersnood en pessiekte agtervolg en Ek gaan van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde, 'n voorbeeld van vervloeking, 'n skrikbeeld, die rede vir 'n gefluit en 'n bespotting onder al die nasies waarheen Ek hulle verdryf het, omdat hulle nie na my woorde geluister het nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘toe Ek my dienaars, die profete, aanhoudend na hulle gestuur het, en hulle nie geluister het nie,’ is die uitspraak van die Here. “Maar julle, hoor die woord van die Here, al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, oor Agab, seun van Kolaja en oor Sedekia, seun van Maäseja, wat vir julle in my Naam leuens profeteer, ‘Kyk, Ek gaan hulle oorgee in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, en hy sal hulle voor julle oë neervel. En daarvan sal 'n vervloeking afgelei word deur al die ballinge van Juda wat in Babel is, naamlik: “Mag die Here met jou maak soos met Sedekia en Agab, wat deur die koning van Babilonië in die vuur laat braai is!” – omdat hulle 'n gruweldaad gepleeg het in Israel: Hulle het met die vroue van hulle medemense owerspel gepleeg en in my Naam vals woorde verkondig wat Ek hulle nie beveel het nie. Ek is die Een wat weet en 'n getuie is,’ is die uitspraak van die Here.” “Vir Semaja, uit Negelam, moet jy sê: So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Dit is jy wat in jou eie naam briewe gestuur het aan die hele volk wat in Jerusalem is, en aan die priester Sefanja, seun van Maäseja, en aan al die priesters, met die woorde: Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada, sodat daar opsieners in die huis van die Here kan wees om elkeen wat kranksinnig is en as profeet optree, in die blok en in die gevangenis te sit. En nou, waarom het jy nie vir Jeremia uit Anatot, wat vir julle as 'n profeet optree, tereggewys nie? Op stuk van sake is dit waarom hy aan ons in Babel 'n boodskap gestuur het wat lui: “Dit gaan lank duur; bou huise en bewoon dit, plant tuine aan en eet die vrugte daarvan!” ’ ” Maar die priester Sefanja het hierdie brief ten aanhore van die profeet Jeremia voorgelees. Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: “ Stuur 'n boodskap aan al die ballinge, ‘So sê die Here oor Semaja, uit Negelam: “Omdat Semaja vir julle geprofeteer het, terwyl Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op leuens laat vertrou het, daarom, so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan van Semaja, uit Negelam, rekenskap eis, en ook van sy nageslag. Daar sal vir hom niemand wees wat tussen hierdie volk woon nie; en hy sal nie die goeie beleef wat Ek aan my volk gaan doen nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘want hy het valshede oor die Here verkondig.’ ” ’ ” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Skryf vir jou al die woorde wat Ek met jou gepraat het in 'n •boekrol. Want kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘dat Ek die lot van my volk Israel en van Juda sal verander,’ sê die Here. ‘Ek sal hulle terugbring na die land wat Ek aan hulle voorouers gegee het, en hulle sal dit in besit neem.’ ” Dit is die woorde wat die Here oor Israel en Juda gesê het: “ So sê die Here, ‘Ons het 'n angskreet gehoor, daar is vrees, en geen vrede nie! Vra maar en kyk of 'n man geboorte kan gee? Waarom sien ek dan elke man met sy hande op sy heupe soos 'n vrou wat geboorte gee? Waarom het al die gesigte verbleek? Helaas, want daardie dag is groot en sonder gelyke! Dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob, maar hy sal daaruit verlos word. Op daardie dag,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, ‘sal Ek sy juk van jou nek af breek en jou stroppe uitmekaar ruk. Vreemdes sal hom nie langer verkneg nie. Hulle sal die Here, hulle God dien, en Dawid, hulle koning wat Ek vir hulle sal laat opstaan. En jy, my dienskneg Jakob, moenie bang wees nie!’ is die uitspraak van die Here. ‘Moet jou nie laat afskrik nie, Israel! Want kyk, Ek gaan jou verlos uit 'n ver plek, jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap. Jakob sal terugkeer; hy sal stil en rustig wees, en niemand sal hom opjaag nie. Ja, Ek is by jou,’ is die uitspraak van die Here, ‘om jou te verlos; want Ek sal 'n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; net aan jou sal Ek geen einde maak nie. Ek sal jou matig straf, maar jou beslis nie ongestraf laat nie.’ “Ja, so sê die Here, ‘Ongeneeslik is jou verwonding, jou wond word nie gesond nie. Daar is niemand wat jou regsaak behartig nie. Vir die wond is daar geen medisyne nie; daar is geen herstel vir jou nie. Al jou minnaars het jou vergeet, hulle vra nie eers na jou nie; want met die wonde van 'n vyand het Ek jou getref. Dit was 'n genadelose bestraffing, omdat jou sondeskuld so groot is, jou sondes so talryk is. Waarom roep jy om hulp oor jou verwonding? Jou smart is ongeneeslik. Omdat jou sondeskuld so groot is, jou sondes so talryk is, het Ek jou hierdie dinge aangedoen. Daarom, almal wat jou verslind, sal verslind word; al jou teenstanders sal saam in ballingskap gaan. Hulle wat jou beroof, is bestem om beroof te word; en almal wat jou plunder, gee Ek oor om geplunder te word. Ja, Ek sal vir jou herstel beskik, jou van jou wonde genees,’ is die uitspraak van die Here, ‘al noem hulle jou die een wat weggejaag is – Sion, die een oor wie niemand navraag doen nie.’ “So sê die Here: ‘Kyk, Ek gaan die lot van Jakob se tente verander, oor sy wonings gaan Ek My ontferm. Dorpe sal op hulle puinhope herbou word, en vestings sal staan waar hulle hoort. Uit hulle sal dankliedere opklink, en die geluid van mense wat dans. Ek sal hulle baie maak; hulle sal nie minder word nie. Ek sal eer aan hulle gee; hulle sal nie gering wees nie. Jakob se kinders sal weer soos voorheen wees; sy volksvergadering sal voor My bestendig wees. Ek sal van almal wat hom verdruk rekenskap eis. Sy maghebber sal uit eie geledere kom; sy heerser sal uit sy midde voortkom. Ek sal hom laat nader kom, en hy sal tot My nader. Ja, wie is die een wat dit sal waag om tot My te nader?’ is die uitspraak van die Here. ‘Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees.’ ” Daar kom die Here se stormwind! Woede het losgebreek – 'n werwelstorm! Dit kolk bo die koppe van goddeloses. Die brandende toorn van die Here sal nie bedaar nie, totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer, dit tot stand gebring het. Aan die einde van die dae sal julle dit verstaan. “In daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek 'n God wees vir al die familiegroepe van Israel, en hulle sal vir My 'n volk wees.” So sê die Here: “Die volk wat aan die swaard ontkom het, het genade gevind in die woestyn. Israel is op pad om rus te vind. Van ver af het die Here aan hom verskyn. “Met 'n ewige liefde het Ek jou liefgehad; daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek. Ek sal jou weer herbou, en jy sal gevestig wees, jongvrou Israel. Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne, en uitgaan in die kring van die dansers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaria. Hulle wat plant, sal die eerste vrugte daarvan geniet. Ja, daar kom 'n dag waarop die wagte op die bergland van Efraim sal uitroep, ‘Maak gereed, en laat ons opgaan na Sion, na die Here ons God!’ ” Ja, so sê die Here, “Jubel met vreugde oor Jakob! Juig oor die hoof van die nasies. Verkondig dit! Sing lof en sê, ‘Verlos u volk, Here, die oorblyfsel van Israel!’ Kyk, Ek gaan hulle bring uit 'n land in die noorde. Ek gaan hulle byeenbring vanaf die uithoeke van die aarde. Onder hulle sal blindes en kreupeles wees, vroue wat swanger is en wat geboorte gee – almal saam. As 'n groot geloofsgemeenskap gaan hulle hierheen terugkeer. Met 'n gehuil sal hulle kom, en onder smeekbedes sal Ek hulle begelei. Ek sal hulle bring by waterstrome, op 'n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie. Want Ek het vir Israel 'n vader geword, Efraim is my eersgeborene. “Hoor die woord van die Here, nasies! Maak dit bekend op die verste eilande, en sê, ‘Hy wat Israel verstrooi het, sal hulle bymekaarmaak en hulle oppas soos 'n herder sy kudde.’ Want die Here het Jakob vrygekoop, hom losgekoop uit die hand van een wat sterker is as hy. Hulle sal kom en jubel op die hoogte by Sion; hulle sal van vreugde straal oor die goedheid van die Here, oor koring, •nuwe wyn en olie, en oor lammers en beeste. Hulle sal wees soos 'n natgeleide tuin; hulle sal nie weer wegkwyn nie. Dan sal jongvroue vreugde vind in kringdanse, ook jong manne en ou manne saam met hulle. Ek sal hulle rou verander in vrolikheid; Ek sal hulle troos, en aan hulle vreugde gee in die plek van hulle droefheid. Ek sal die priesters verkwik met olie, en my volk sal met my goedheid versadig word,’ ” is die uitspraak van die Here. So sê die Here: “'n Stem word gehoor in Rama, 'n treurlied, 'n bittere gehuil. Ragel huil oor haar kinders; sy weier om vertroos te word oor haar kinders, omdat hulle nie meer daar is nie.” So sê die Here, “Weerhou jou stem daarvan om te huil, jou oë daarvan om trane te stort; want daar is beloning vir jou geswoeg,” is die uitspraak van die Here; “hulle sal terugkeer uit die land van die vyand. Daar is hoop vir jou nageslag,” is die uitspraak van die Here – “kinders sal terugkeer na hulle grondgebied. “ Ek het dit beslis gehoor – Efraim bejammer homself, ‘U het my ingebreek, en ek het my laat inbreek soos 'n ongeleerde kalf. As U my laat terugkeer, keer ek werklik terug; want U is die Here my God. Ja, nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; nadat ek tot die besef gekom het, het ek myself op die heup geslaan. Ek staan beskaamd, ek voel ook verneder; ja, ek dra die skande van my jeug.’ Is Efraim vir My 'n dierbare seun, 'n kind wat My vreugde verskaf? Al vaar Ek telkens teen hom uit, bly Ek hom weer onthou. Daarom is my binneste oor hom in beroering. Ek sal My beslis oor hom ontferm,” is die uitspraak van die Here. “Rig vir jou padwysers op; bring vir jou rigtingwysers aan! Rig jou aandag op die hoofroete, die pad wat jy geloop het. Keer terug, jongvrou van Israel! Keer terug na hierdie dorpe van jou! Hoe lank gaan jy nog huiwer, afvallige dogter? Want die Here skep iets nuuts op die aarde: 'n Vrou sal om 'n man beweeg. ” “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die Here jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek. “ ‘Want Ek verkwik 'n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.’ ” Hierop het ek wakker geword en gekyk, en my slaap was vir my soet. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai. En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here. “ In daardie tyd sal hulle nie meer sê, “ ‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’ nie. “Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word. “ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” So sê die Here, wat die son bedags as 'n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: “As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die Here, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd 'n nasie te wees voor My.” So sê die Here, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het,” is die uitspraak van die Here. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer die stad vir die Here herbou sal word, van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. Die maatlyn moet dan verder reguit aangelê word tot op die Garebheuwel; dan moet daar gedraai word na Goa. Die hele vallei waar die lyke en die as is, en al die terrasse tot by die spruit Kidron en die hoek van die Perdepoort aan die oostekant, sal vir die Here 'n heilige gebied wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadresar. Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk deur te sê: “Waarom hou jy aan profeteer en sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië; hy sal dit inneem, en Sedekia, koning van Juda, sal nie vrykom uit die hand van die Galdeërs nie, maar sal beslis oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal van aangesig tot aangesig met hom praat en hom in die oë moet kyk; en hy sal Sedekia na Babel neem, en hy sal daar bly totdat Ek, die Here, aan hom aandag gee,” is die uitspraak van die Here, “As julle teen die Galdeërs veg, sal julle nie sukses behaal nie.” ’ ” Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, ‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg. ” ’ “Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op 'n weegskaal afgeweeg. Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook 'n oop afskrif, en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in 'n erdekruik, sodat dit vir 'n lang tyd behoue bly.” Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’ “Ek het tot die Here gebid, nadat ek die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija gegee het, “ ‘Ag, Here, my Heer, kyk, dit is U wat die hemel en die aarde gemaak het deur u groot krag en uitgestrekte arm! Niks is vir U onmoontlik nie. U bewys troue liefde aan duisende, maar vergeld die sondeskuld van ouers in die skote van hulle kinders ná hulle. Groot en magtige God, wie se naam die Here, Heerser oor alle magte, is, U wat groot in raadsbesluite en groots in die uitvoering daarvan is, wie se oë oop is vir al die optrede van mensekinders, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade, U wat tekens en wonders verrig het in Egipteland, tot vandag toe nog, in sowel Israel as onder die mensdom, en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – U het u volk Israel uit Egipteland gelei deur tekens en wonders, deur 'n sterk hand en 'n uitgestrekte arm en te midde van groot verskrikkings. U het aan hulle hierdie land gegee wat U met 'n eed aan hulle voorouers beloof het om aan hulle te gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hulle het gekom en dit in besit geneem, maar hulle het nie na u stem geluister nie en u voorskrifte het hulle nie gevolg nie. Hulle het niks gedoen van alles wat U hulle beveel het om te doen nie. Toe het U hulle al hierdie onheil laat beleef. Kyk, die beleëringswalle kom al tot teen die stad om dit in te neem. Die stad is klaar oorgegee in die hand van die Galdeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard, hongersnood en 'n epidemie. Wat U aangekondig het, gebeur nou; kyk, U sien dit self! Maar U, Here, my Heer, het vir my gesê: “Koop vir jou die stuk grond met silwer en kry getuies! Maar die stad is reeds oorgegee in die hand van die Galdeërs!” ’ ” Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: “ Kyk, Ek is die Here, die God van alles wat leef. Is enigiets onmoontlik vir my? Daarom, so sê die Here, kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die Galdeërs en in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem. Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hulle sal hierdie stad aan die brand steek en dit afbrand, saam met die huise waar mense op hulle dakke vir Baäl offers verbrand het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te tart. Die Israeliete en die Judeërs het immers van hulle jong dae af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Ja, die Israeliete het My met hulle handewerk net getart.” Dit is die uitspraak van die Here. “Ja, hierdie stad was vir My 'n rede tot toorn en woede vanaf die dag dat dit gebou is tot vandag toe, sodat Ek dit voor my aangesig wil verwyder oor al die boosheid van die Israeliete en Judeërs wat hulle gedoen het om My te tart – hulle, hulle konings en •hoë amptenare, hulle priesters en profete, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. Hulle draai hulle rug op My en wys nie hulle gesig nie. Alhoewel Ek hulle aanhoudend deeglik onderrig het, het hulle nie geluister deur die teregwysings te aanvaar nie. Hulle het hulle verfoeilike afgode neergesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om so my huis te verontreinig. Hulle het offerhoogtes vir Baäl in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters aan Moleg te wy – iets wat Ek hulle nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie – om sodoende iets afstootliks te doen en Juda te laat sondig! En nou, in die lig hiervan” – so sê die Here, die God van Israel, aan hierdie stad waarvan julle sê, ‘Dit is oorgegee in die hand van die koning van Babilonië deur die swaard, hongersnood en epidemie’: “ Kyk, Ek gaan hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn, my woede en in fel grimmigheid. Ek sal hulle na hierdie plek toe terugbring en hulle veilig laat woon. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. Ek sal aan hulle eensgesinde harte gee en een pad, sodat hulle altyd vir My ontsag sal hê, tot hulle eie beswil en dié van hulle kinders ná hulle. Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit: Ek sal My nooit daarvan weerhou om aan hulle goed te doen nie, en Ek sal ontsag vir My in hulle harte gee, sodat hulle nie van My af sal wegdraai nie. Ek sal My daarin verheug om aan hulle goed te doen. Ek sal hulle in getrouheid, met my hele hart en siel, in hierdie land plant. ” “Ja, so sê die Here, ‘Soos Ek al hierdie groot onheil oor hierdie volk gebring het, net so sal Ek al die goeie dinge wat Ek oor hulle sê, oor hulle bring. Daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is 'n woesteny, sonder mens of dier; dit is oorgegee in die hand van die Galdeërs.” Mense sal landerye koop met silwer, koopbriewe skryf en verseël, en getuies kry – in die gebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem, in die dorpe van Juda, in die dorpe van die bergland, die Sjefela, en die Negev, want Ek sal hulle lot verander,’ ” is die uitspraak van die Here. Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jeremia gekom terwyl hy nog onder arres was in die binnehof van die wagte se kwartiere: “So sê die Here wat die aarde gemaak het, die Here wat dit gevorm het om dit stewig te vestig – Here is sy Naam, ‘Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.’ Ja, so sê die Here, die God van Israel, ‘Wat die huise van hierdie stad betref, en die huise van die konings van Juda wat afgebreek is vir die beleëringswalle en wapens, toe hulle, die Galdeërs, op pad was om oorlog te voer, en om dit te vul met die lyke van mense wat Ek neergevel het in my toorn en woede, hulle vir wie Ek my gesig verberg het vanweë hierdie stad, oor al hulle boosheid: Kyk, Ek gaan Jerusalem herstel en genesing laat plaasvind; Ek sal hulle gesond maak. Ek sal aan hulle 'n rykdom van vrede en bestendigheid openbaar. Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander, en hulle weer bou soos voorheen. Ek sal hulle reinig van al hulle sondeskuld waarmee hulle teen My gesondig het. Ek sal al hulle sondeskuld vergewe waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. En Jerusalem sal vir My 'n naam wees wat vreugde verskaf – as 'n lofprysing en 'n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie dinge wat Ek vir hulle doen. Hulle sal sidder en beef oor al die goeie dinge en oor al die voorspoed wat Ek vir haar voorsien.’ “ So sê die Here, ‘In hierdie plek waarvan julle sê: “Dit lê vervalle, sonder mens of dier” – in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mense, sonder inwoners en sonder diere, sal dit weer gehoor word: die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van bruidegom en bruid, die stem van hulle wat sê, “Prys die Here, Heerser oor alle magte, want die Here is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here. Ja, Ek sal die lot van die land verander om te wees soos voorheen,’ sê die Here. “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘In hierdie plek wat vervalle lê, sonder mense en diere, en in al sy dorpe sal daar weer weiveld wees vir herders wat kleinvee laat lê en rus. In die dorpe van die bergland, die dorpe van die Sjefela, van die Negev en van die gebied van Benjamin, en in die omgewing van Jerusalem en in die dorpe van Juda, sal die kleinvee weer verbygaan onder die hand van die een wat hulle tel,’ sê die Here. “ ‘Kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘wanneer Ek die goeie belofte wat Ek oor die huis van Israel en die huis van Juda uitgespreek het, gestand sal doen. “In daardie dae en in daardie tyd sal Ek vir Dawid 'n spruit van geregtigheid laat opskiet, en hy sal doen wat reg en billik is in die land. In daardie dae sal Juda verlos word en Jerusalem sal veilig woon. En dit is wat sy genoem sal word: Die Here is ons geregtigheid.’ “Ja, so sê die Here, ‘Daar sal nie vir Dawid 'n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie; en vir die Levitiese priesters sal daar nie voor My 'n man ontbreek wat altyd •brandoffers bring, •graanoffers verbrand en •maaltydoffers offer nie.’ ” Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: “ So sê die Here, ‘As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, sodat dag en nag nie meer op tyd aanbreek nie, sal ook my verbond met Dawid, my dienskneg, verbreek kan word, sodat daar nie vir hom 'n seun sal wees om as koning te regeer op sy troon nie. Dit geld ook my verbond met die Leviete, die priesters wat in my diens is. Soos wat die hemelliggame nie getel en die sand van die see nie afgemeet kan word nie, so sal Ek die nageslag van Dawid, my dienskneg, vermeerder, en ook die Leviete wat in my diens is.’ ” Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: “Het jy nie opgelet wat hierdie volk sê nie? Hulle sê, ‘Die twee familiegroepe wat die Here gekies het – Hy het hulle verwerp!’ Hulle verag my volk, sodat, wat hulle betref, hulle nie meer 'n nasie is nie.” So sê die Here: “As Ek my verbond met dag en nag, die voorskrifte vir die hemel en die aarde, nie neergelê het nie, dan sou Ek ook die nageslag van Jakob en van Dawid, my dienskneg, verwerp deur nie uit sy nageslag heersers oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob te neem nie. Ja, Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het terwyl Nebukadresar, die koning van Babilonië, met sy hele leër, saam met al die koninkryke van die wêreld wat onder sy heerskappy was, en al die ander volke, teen Jerusalem en al haar dorpe oorlog gemaak het: “So sê die Here, die God van Israel: Gaan praat met Sedekia, koning van Juda, en sê vir hom, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit sy hand vrykom nie; want jy sal beslis gevange geneem en in sy hand oorgegee word. Jy sal die koning van Babilonië in die oë moet kyk en van aangesig tot aangesig met hom moet praat; en jy sal na Babel toe gaan.” “ ‘Maar hoor die woord van die Here, Sedekia, koning van Juda! So sê die Here oor jou: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie; in vrede sal jy sterf. En net soos met die dodevure vir jou voorvaders, die vorige konings wat voor jou daar was, so sal hulle vir jou ook 'n dodevuur brand, en oor jou rou met ‘Helaas, heer!’ Ja, dit is 'n woord wat Ek self uitgespreek het.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here. Die profeet Jeremia het toe al hierdie woorde vir Sedekia, koning van Juda, in Jerusalem gesê terwyl die leër van die koning van Babilonië besig was om oorlog te voer teen Jerusalem en al die stede van Juda wat oorgebly het, teen Lagis en Aseka; dit was immers die enigste versterkte stede wat oorgebly het van al die stede in Juda. Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het nadat koning Sedekia 'n verbond gesluit het met die hele volk wat in Jerusalem was, om vir hulle vrylating aan te kondig, dat elkeen sy slaaf en elkeen sy slavin, Hebreeuse mans en vroue, as vry mense moes wegstuur, sodat niemand hulle – die Judeërs en hulle volksgenote – as slawe sou aanhou nie. Al die •hoë amptenare en die hele volk wat tot die verbond toegetree het, het daaraan gehoor gegee om elkeen sy slaaf en slavin as vry mense te laat weggaan, om hulle nie langer as slawe aan te hou nie. Hulle het gehoor gegee en hulle toe laat gaan. Maar daarna het hulle die slawe en slavinne wat hulle as vry mense laat gaan het, laat terugkom en hulle weer as slawe en slavinne onderwerp. Die woord van die Here wat toe van die Here tot Jeremia gekom het, was: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek self het met julle voorouers 'n verbond gesluit op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het, met die woorde: “ Aan die einde van sewe jaar moet julle elkeen sy volksgenoot, die Hebreër wat hom as skuldslaaf aan jou verkoop en jou ses jaar lank gedien het, laat gaan. Jy moet hom as 'n vry man van jou af laat weggaan.” Maar julle voorouers het nie na My geluister nie en nie gehoor gegee nie. Julle het egter onlangs tot inkeer gekom en gedoen wat reg is in my oë deur elkeen vrylating aan te kondig vir sy medemens. Julle het voor My 'n verbond gesluit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is. Maar julle het omgedraai en my Naam ontheilig; julle het elkeen sy slaaf en slavin wat julle as vry mense laat gaan het waarheen hulle wou, laat terugkom. Julle het hulle onderwerp om weer julle slawe en slavinne te word.’ “ Daarom, so sê die Here, ‘Julle het nie na My geluister deur elkeen vrylating aan te kondig vir sy volksgenoot en medemens nie. Kyk, Ek gaan dan vir julle vrylating afkondig,’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘maar julle sal vrygelaat wees aan die swaard, aan pessiekte en hongersnood. Ek gaan van julle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde. Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat nie die woorde van die verbond wat hulle voor My gesluit het, gestand gedoen het nie, die kalf maak wat hulle in twee gesny en toe tussen die stukke deurbeweeg het. Die hoë amptenare van Juda, die hoë amptenare van Jerusalem, die eunugs, die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgeloop het – hulle sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van dié wat hulle lewens soek. Hulle lyke sal voedsel wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. “ ‘ Sedekia, koning van Juda en sy hoë amptenare sal Ek in die hand van hulle vyande oorgee en in die hand van dié wat hulle lewens soek – in die mag van die leër van die koning van Babilonië, wat besig is om van julle af weg te trek. Kyk, Ek gee bevel,’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘en Ek sal hulle na hierdie stad laat terugkeer, en hulle sal daarteen oorlog voer, dit inneem en dit afbrand. Die dorpe van Juda sal Ek 'n woesteny maak, sonder inwoners.’ ” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die dae van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda: “Gaan na die gemeenskap van die Regabiete en praat met hulle! Bring hulle dan na die huis van die Here, na een van die vertrekke, en laat hulle wyn drink.” Ek het toe Jaäsanja, seun van Jeremia, seun van Gabassinja, en sy broers en al sy seuns, ja, die hele gemeenskap van die Regabiete geneem, en hulle na die huis van die Here gebring, na die vertrek van die seuns van Ganan, seun van Jigdalja, die man van God, wat langs die vertrek van die •hoë amptenare was, bo die vertrek van Maäseja, seun van Sallum, die deurwagter. Ek het voor die afstammelinge van die gemeenskap van Regabiete houers vol wyn en bekers neergesit, en vir hulle gesê: “Drink wyn!” Maar hulle het geantwoord: “Ons drink nie wyn nie, want Jonadab, seun van Regab, ons voorvader, het ons beveel, ‘Julle en julle afstammelinge mag tot in ewigheid nie wyn drink nie. Huise mag julle nie bou nie, saad mag julle nie saai nie en wingerde mag julle nie aanplant of besit nie. Maar in tente moet julle woon, al die dae van julle lewe, sodat julle lank mag leef op die grond waar julle as •vreemdelinge vertoef. ’ Ons het geluister na die stem van Jonadab, seun van Regab, ons voorvader, na alles wat hy ons beveel het: om nie, solank ons leef wyn te drink nie – ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters – en om nie huise te bou om in te woon nie. Wingerde, landerye of saad besit ons nie. Ons het in tente gewoon, en ons het geluister en gedoen net soos Jonadab, ons voorvader, ons beveel het. Maar toe Nebukadresar, die koning van Babilonië teen die land optrek, het ons gesê, ‘Kom, laat ons na Jerusalem gaan, weg van die leër van die Galdeërs en die leër van die Arameërs.’ Ons woon dan nou in Jerusalem.” Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Gaan en sê vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: “Wil julle nie teregwysing aanvaar deur na my woorde te luister nie?” ’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘ “Die woorde van Jonadab, seun van Regab, waarmee hy sy seuns opdrag gegee het om geen wyn te drink nie, is in stand gehou. Hulle drink tot vandag toe nog nie wyn nie, want hulle gehoorsaam die opdrag van hulle voorvader. Maar Ek, Ek het aanhoudend met julle gepraat, maar julle luister nie na My nie. Ek het aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur om te sê, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, en doen wat goed is! Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien nie, sodat julle kan bly woon in die land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het.’ Maar julle het nie julle ore oopgemaak en na My geluister nie. Ja, die afstammelinge van Jonadab, seun van Regab, het die opdrag van hulle voorvader, wat hy hulle beveel het, in stand gehou, maar hierdie volk luister nie na My nie. “ ‘ “Daarom,” ’ ” so sê die Here, die God van alle magte, die God van Israel, “ ‘ “Kyk, Ek gaan oor Juda en al die inwoners van Jerusalem al die onheil bring wat Ek oor hulle uitgespreek het, omdat Ek met hulle gepraat, maar hulle nie geluister het nie, Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie.” ’ ” Vir die gemeenskap van die Regabiete het Jeremia toe gesê: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Omdat julle gehoorsaam was aan die opdrag van Jonadab, julle voorvader, en julle al sy opdragte nagekom en gedoen het net soos hy julle beveel het, daarom,’ so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘daar sal nooit iemand ontbreek uit die nageslag van Jonadab, seun van Regab, wat by My in diens is nie.’ ” In die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: “Vat vir jou 'n •boekrol en skryf daarin al die woorde wat Ek met jou gepraat het oor Israel en Juda en oor al die nasies, vanaf die dag dat Ek met jou gepraat het in die dae van Josia, tot vandag toe. Miskien sal die huis van Juda hoor van al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat elkeen van hulle sal omdraai weg van sy verkeerde pad, en Ek hulle sondeskuld en sonde kan vergewe.” Toe het Jeremia vir Barug, seun van Nerija, geroep, en Barug het uit die mond van Jeremia al die woorde wat die Here met hom gepraat het, in 'n boekrol geskryf. Jeremia het Barug opdrag gegee: “Ek is ingeperk, ek mag nie na die huis van die Here gaan nie. Gaan jy dan en lees op 'n vasdag in die huis van die Here ten aanhore van die volk uit die boekrol die woorde van die Here wat jy uit my mond neergeskryf het. Jy moet dit ook voorlees ten aanhore van die hele Juda wat uit hulle dorpe kom. Miskien sal hulle smeekbede voor die Here neergelê word, en sal elkeen van hulle omdraai, weg van sy verkeerde pad; want die toorn en die woede waarmee die Here hierdie volk dreig, is baie groot.” Barug, seun van Nerija, het toe gemaak net soos die profeet Jeremia hom beveel het – om uit die boekrol die woorde van die Here in die huis van die Here voor te lees. In die vyfde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, in die negende maand, is die hele volk in Jerusalem, en die hele volk wat uit die dorpe van Juda in Jerusalem aangekom het, opgeroep vir 'n vasdag voor die Here. Barug het toe uit die boekrol die woorde van Jeremia aan die hele volk voorgelees in die huis van die Here, uit die vertrek van Gemarja, seun van Safan, die sekretaris, in die boonste voorhof by die ingang na die Nuwe Poort in die huis van die Here, ten aanhore van die hele volk. Toe Miga, seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here uit die boekrol hoor, het hy afgegaan na die paleis van die koning, na die kamer van die sekretaris. Al die •hoë amptenare het juis daar gesit: Elisama, die sekretaris, Delaja, seun van Semaja, Elnatan, seun van Agbor, Gemarja, seun van Safan, Sedekia, seun van Gananja – al die hoë amptenare. Miga deel toe aan hulle al die woorde mee wat hy gehoor het toe Barug uit die boekrol voorgelees het ten aanhore van die volk. Toe stuur al die hoë amptenare Jehudi, seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi, met 'n boodskap na Barug: “Die boekrol waaruit jy ten aanhore van die volk gelees het, neem dit in jou hand en kom!” Barug, seun van Nerija, het die boekrol in sy hand geneem en toe na hulle gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Gaan sit asseblief, dan lees jy dit, sodat ons dit met ons eie ore kan hoor.” Barug het dit toe ten aanhore van almal voorgelees. Toe hulle al die woorde hoor, het hulle bewend na mekaar beweeg en vir Barug gesê: “Ons moet beslis al hierdie woorde aan die koning meedeel.” Vir Barug het hulle gevra: “Lig ons asseblief in: Hoe kon jy al hierdie woorde uit sy mond opskryf?” Barug het hulle geantwoord: “Met sy eie mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, terwyl ek dit met ink in die boekrol skryf.” Die hoë amptenare het vir Barug gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia. Niemand mag weet waar julle is nie.” Hulle het toe na die koning in die voorhof gegaan – die boekrol het hulle weggesit in die kamer van Elisama, die sekretaris – en ten aanhore van die koning oor al die sake berig. Toe stuur die koning Jehudi om die boekrol te gaan haal. Hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisama, die sekretaris. Jehudi het dit toe, ten aanhore van die koning en al die hoë amptenare wat by die koning staan, voorgelees. Die koning het in die wintervertrek gesit, in die negende maand, met 'n vuur wat in die kolebak voor hom brand. Sodra Jehudi drie of vier velle gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes stukkend gesny en in die vuur op die kolebak gegooi, totdat die hele boekrol vernietig is in die vuur op die kolebak. Die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het, het nie gebewe of hulle klere geskeur nie. Selfs toe Elnatan, Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie. Die koning het Jeragmeël, seun van die koning, Seraja, seun van Asriël, en Selemja, seun van Abdeël, opdrag gegee om Barug, die skrywer daarvan, en die profeet Jeremia gevange te neem. Maar die Here het hulle weggesteek. Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom, nadat die koning die boekrol met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia neergeskryf het, verbrand het: “Kry weer vir jou 'n ander boekrol en skryf daarin al die vorige woorde wat in die vorige boekrol was wat Jojakim, koning van Juda, verbrand het. En oor Jojakim, koning van Juda, moet jy sê, ‘So sê die Here: “Jy het self hierdie boekrol verbrand terwyl jy sê, ‘Waarom het jy daarin geskryf: Die koning van Babilonië sal beslis kom en hierdie land verwoes en mens en dier daaruit laat verdwyn?’ ” Daarom, so sê die Here oor Jojakim, koning van Juda: “Hy sal niemand hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. Ek sal van hom en sy nageslag en sy dienaars rekenskap eis oor hulle sondeskuld. Ek sal oor hulle en oor die inwoners van Jerusalem en oor die mense van Juda al die onheil bring wat Ek oor hulle uitgespreek het. Maar hulle het nie geluister nie.” ’ ” Daarop het Jeremia 'n ander boekrol geneem en dit vir die skrywer Barug, seun van Nerija, gegee. Hy het toe daarin, uit die mond van Jeremia, al die woorde van die boekrol geskryf wat Jojakim, die koning van Juda, verbrand het. En nog baie soortgelyke woorde is bygevoeg. Sedekia, 'n seun van Josia, vir wie Nebukadresar, die koning van Babilonië, as koning aangestel het in die land Juda, het as koning regeer in die plek van Gonja, seun van Jojakim. Hy en sy dienaars en die volk van die land het egter nie geluister na die woorde van die Here wat Hy by monde van die profeet Jeremia uitgespreek het nie. Koning Sedekia het Jugal, seun van Selemja, en Sefanja, seun van Maäseja, die priester, met 'n boodskap na die profeet Jeremia gestuur: “Bid asseblief vir ons tot die Here ons God.” Jeremia kon toe nog ongehinderd kom en gaan onder die volk; hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie. Die leër van die farao het uit Egipte uitgetrek en toe die Galdeërs, wat besig was om Jerusalem te beleër, berig kry daaroor, het hulle van Jerusalem af teruggetrek. Die woord van die Here het toe tot die profeet Jeremia gekom: “So sê die Here, die God van Israel, ‘So moet julle vir die koning van Juda, wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg, sê: “Kyk, die leër van die farao wat uitgetrek het om julle te hulp te kom, sal terugkeer na hulle land, na Egipte toe. Maar die Galdeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en afbrand.” ’ So sê die Here, ‘Moet julleself nie mislei deur te dink, die Galdeërs sal beslis van ons af weggaan, nie; want hulle sal nie gaan nie. Ja, al sou julle die hele leër van die Galdeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, en daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, sal elkeen van hulle weer opstaan in sy tent, en hulle sal hierdie stad afbrand.’ ” Toe die leër van die Galdeërs van Jerusalem af teruggetrek het vanweë die leër van die farao, wou Jeremia uit Jerusalem vertrek om na die gebied van Benjamin te gaan, om saam met die mense daar deel te neem aan grondverdeling. Maar toe hy by die Benjaminpoort kom, was daar 'n bevelvoerder van die wagte met die naam Jirija, seun van Selemja, seun van Gananja. Hy het die profeet Jeremia gevange geneem en gesê: “Jy wil na die Galdeërs oorloop!” Maar Jeremia het gesê: “Dit is nie waar nie! Ek wil nie na die Galdeërs oorloop nie.” Maar Jirija het nie na hom geluister nie, en hy het Jeremia gevange geneem en hom na die •hoë amptenare geneem. Die •hoë amptenare was woedend vir Jeremia en het hom geslaan. Hulle het hom in 'n plek van aanhouding, by die huis van Jonatan, die sekretaris, geplaas, want hulle het daarvan 'n gevangenis gemaak. So het Jeremia in die kerker beland, in die gewelfde deel. Jeremia moes baie dae daar bly. Koning Sedekia het hom laat haal. Die koning het hom in sy paleis in die geheim uitgevra; hy het gesê: “Is daar 'n woord van die Here af?” Jeremia het geantwoord: “Daar is.” Verder het hy gesê: “U sal oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië.” Jeremia het ook vir koning Sedekia gevra: “Wat het ek teen u of u dienaars of hierdie volk gesondig dat julle my in die gevangenis gesit het? Waar is julle profete wat vir julle geprofeteer het, ‘Die koning van Babilonië sal julle nie oorval nie, en ook nie hierdie land nie?’ Maar nou, my heer die koning, luister asseblief! Laat my smeekbede asseblief voor u gelê word: Moet my nie terugstuur na die huis van Jonatan, die sekretaris, nie, sodat ek nie daar sterf nie.” Koning Sedekia het toe opdrag gegee, en hulle het Jeremia onder toesig gehou in die binnehof van die wagte se kwartiere. Hulle het vir hom elke dag 'n ronde brood uit die straat van die bakkers gegee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly. Sefatja, seun van Mattan, Gedalja, seun van Pasgur, Jugal, seun van Selemja, en Pasgur, seun van Malkija, het die woorde gehoor wat Jeremia vir die hele volk bly sê het: “So sê die Here, ‘Wie in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, hongersnood en epidemie, maar wie uitgaan na die Galdeërs, sal leef; hy sal sy lewe vir homself as buit behou en bly leef;’ ” en ook: “So sê die Here, ‘Hierdie stad sal beslis oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem.’ ” Die •hoë amptenare sê toe vir die koning: “Hierdie man moet tog doodgemaak word! Op stuk van sake is hy besig om die hande van die krygsmanne wat nog in hierdie stad oor is, en die hande van die hele volk, lam te maak deur hierdie woorde vir hulle te sê. Ja, dié man soek nie vrede vir hierdie volk nie, maar teenspoed.” Daarop het koning Sedekia gesê: “Kyk, hy is in julle hande. Die koning kan immers niks aan julle doen nie.” Hulle het Jeremia gevat en hom laat afsak in die opgaarput wat in die binnehof van die wagte se kwartiere was, wat aan Malkija, seun van die koning, behoort het. Hulle het Jeremia met toue laat afsak. Daar was nie water in die opgaarput nie, maar modder, en Jeremia het in die modder ingesak. Ebed-Meleg, die Kussiet, 'n eunug wat in die paleis was, het gehoor dat hulle Jeremia in die opgaarput geplaas het. Terwyl die koning in die Benjaminpoort sit, het Ebed-Meleg uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: “My heer die koning, hierdie manne het verkeerd opgetree in alles wat hulle aan die profeet Jeremia gedoen het deurdat hulle hom in die opgaarput laat afsak het. Hy sal, waar hy ook al is, van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie. ” Die koning het Ebed-Meleg, die Kussiet, toe opdrag gegee: “Neem hiervandaan dertig man met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die opgaarput voordat hy sterf!” Ebed-Meleg het die manne met hom saamgeneem en by die paleis na die kelder onder die stoorkamer gegaan. Hy het daaruit vodde van verslete en geskeurde klere geneem en dit met toue laat afsak na Jeremia in die opgaarput. Ebed-Meleg, die Kussiet, het vir Jeremia gesê: “Sit tog die vodde van verslete en geskeurde klere onder jou armholtes, onder die toue in.” Jeremia het toe so gemaak, en hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die opgaarput laat kom. Jeremia het daarna in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die Here. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die Here leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die Here, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie. ’ ” Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die Here, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die Here my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê, “ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei en die oorhand oor jou gekry. Toe jou voete weggesink het in die slyk, het hulle teruggetree.’ “Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word. ” Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie. Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is. Dít het gebeur toe Jerusalem ingeneem is: In die negende jaar van Sedekia se regering, koning van Juda, in die tiende maand, het Nebukadresar, die koning van Babilonië, met sy hele leër by Jerusalem aangekom en dit beleër. In die elfde regeringsjaar van Sedekia, in die vierde maand, op die negende van die maand, is die stadsmuur deurgebreek. Al die bevelvoerders van die koning van Babilonië het gekom en plaasgeneem in die Middelpoort. Dit was Nergal-Sareser uit Sinmagir en die rabsaries Nebosarsekim – Nergal-Sareser was die hoofbevelvoerder – en ook al die ander bevelvoerders van die koning van Babilonië. Toe koning Sedekia van Juda en al die krygsmanne hulle sien, het hulle gevlug en in die nag met die pad deur die koning se tuin by die poort tussen die twee mure uit die stad gegaan. Hy het met die pad na die Araba uitgegaan. Maar die leër van die Galdeërs het hulle agternagesit, en Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Hulle het hom gevange geneem en hom na Nebukadresar, die koning van Babilonië, na Ribla, in die land Hamat, geneem, en hy het vonnisse oor hom uitgespreek: Die koning van Babilonië het in Ribla die seuns van Sedekia voor sy oë tereggestel. Die koning van Babilonië het ook al die hoëlui van Juda tereggestel. Sedekia se oë het hy verblind en hom met bronskettings geboei om hom na Babel te neem. Die paleis van die koning en die huise van die volk het die Galdeërs afgebrand, en die stadsmure van Jerusalem het hulle afgebreek. Die deel van die bevolking wat nog by die stad oor was, dié wat na hom oorgeloop het en die res van die bevolking wat oorgebly het, is deur Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer na Babilonië. Van die armstes van die bevolking wat niks gehad het nie, het Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in die land Juda laat agterbly. Hy het in dié tyd vir hulle wingerde en landerye gegee. Nebukadresar, die koning van Babilonië, het deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, oor Jeremia die volgende opdrag gegee: “Neem hom en hou 'n oog oor hom! Moet hom geen kwaad aandoen nie, maar doen aan hom presies soos hy jou versoek.” Hy het die boodskap na Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, die rabsaries Nebusasban, die hoofbevelvoerder Nergal-Sareser en al die belangrike persone van die koning van Babilonië gestuur. Hulle het Jeremia uit die binnehof van die wagte se kwartiere laat haal. Hulle het hom aan Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, oorhandig om hom huis toe te neem. So het hy tussen die mense bly woon. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom terwyl hy nog in gevangenskap was in die binnehof van die wagte se kwartiere: “Gaan praat met Ebed-Meleg, die Kussiet en sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek sal my woord teen hierdie stad in vervulling laat gaan – ten kwade en nie ten goede nie. Dit sal op daardie dag voor jou oë gebeur. Maar Ek sal jou red op daardie dag,” ’ is die uitspraak van die Here. ‘ “Jy sal nie oorgelewer word in die hande van die mense vir wie jy bang is nie. Ja, Ek sal jou beslis laat vrykom; deur die swaard sal jy nie val nie. Jy sal jou lewe vir jouself as buit behou omdat jy op My vertrou het,” is die uitspraak van die Here. ’ ” Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het nadat Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, hom vrygelaat het in Rama. Toe hy hom laat haal het, is hy met handboeie geboei tussen al die ballinge van Jerusalem en Juda wat weggevoer is na Babilonië. Die aanvoerder van die lyfwag het Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het hierdie onheil oor hierdie plek aangekondig, en die Here het dit laat gebeur en gedoen soos Hy gesê het. Omdat julle teen die Here gesondig het en nie na sy stem geluister het nie, het hierdie dinge met julle gebeur. En nou, kyk, ek bevry jou vandag van die handboeie wat aan jou hande is. As jy dit goedvind om saam met my na Babel te gaan, kom dan! Ek sal my oog oor jou hou. Maar as jy dit nie goedvind om saam met my na Babel te gaan nie, laat dit daarby! Kyk, die hele land lê oop voor jou – waar jy dit ook al goed en reg vind om heen te gaan, gaan daarheen!” Hy het nog nie geantwoord nie, toe sê Nebusaradan: “Keer dan terug na Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, wat die koning van Babilonië oor die dorpe van Juda aangestel het, en bly saam met hom tussen die mense, of gaan waarheen dit ook al vir jou reg lyk om te gaan.” Die aanvoerder van die lyfwag het toe vir hom padkos en 'n geskenk gegee, en hom laat gaan. Jeremia het na Gedalja, seun van Agikam, in Mispa gegaan. Hy het by hom gebly tussen die mense wat in die land oor was. Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings wat nog in die veld was, hulle en hulle manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja, seun van Agikam, in die land aangestel het, en dat hy mans, vroue en kinders, en mense uit die armstes van die land, wat nie in ballingskap na Babilonië weggevoer is nie, aan hom toevertrou het, het hulle na Gedalja in Mispa gekom. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, asook Seraja, seun van Tangumet, en die seuns van Efai uit Netofa, en ook Jesanja, seun van 'n man uit Maäga – hulle en hulle manskappe. Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe 'n eed afgelê: “Moenie bang wees om die Galdeërs te dien nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle. Wat my betref – kyk, ek gaan in Mispa bly in diens van die Galdeërs, wat na ons toe sal kom. Maar julle, samel wyn, somervrugte en olyfolie in en plaas dit in julle houers! Gaan woon dan in julle dorpe waarvan julle die beheer oorneem!” Ook al die Judeërs wat in Moab en by die Ammoniete en in Edom en al die ander lande was, het gehoor dat die koning van Babilonië 'n oorblyfsel vir Juda agtergelaat het, en dat hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, oor hulle aangestel het. Al die Judeërs het toe teruggekeer uit al die plekke waarheen hulle verdryf was. Hulle het na die land van Juda gekom, na Gedalja in Mispa. Hulle het baie groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel. Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat in die veld was, het na Gedalja in Mispa gekom en vir hom gesê: “Is jy hoegenaamd bewus daarvan dat Baälis, koning van die Ammoniete, vir Ismael, seun van Netanja, gestuur het om jou om die lewe te bring?” Maar Gedalja, seun van Agikam, het hulle nie geglo nie. Joganan, seun van Kareag, het in Mispa in die geheim vir Gedalja gesê: “Laat ek gaan en Ismael, seun van Netanja, doodslaan; niemand sal dit weet nie. Waarom moet hy jou om die lewe bring? Waarom moet die hele Juda wat by jou byeengekom het, verstrooi word, en die oorblyfsel van Juda tot niet gaan?” Maar Gedalja, seun van Agikam, het vir Joganan, seun van Kareag, gesê: “Moenie hierdie ding doen nie, want wat jy oor Ismael sê, is 'n leuen.” In die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie en hoofamptenare van die koning, met tien manne saam met hom, by Gedalja, seun van Agikam, in Mispa aangekom. Terwyl hulle daar in Mispa saam geëet het, het Ismael, seun van Netanja, en die tien manne wat by hom was, opgestaan en Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, met die swaard neergevel en hom doodgemaak – hy wat deur die koning van Babilonië in die land aangestel is. Ook al die Judeërs wat by hom, Gedalja, in Mispa was, en die Galdeërs wat hulle daar bevind het, die krygsmanne, is deur Ismael neergevel. Die tweede dag ná die moord op Gedalja, terwyl niemand dit nog geweet het nie, het daar tagtig manne uit Sigem, Silo en Samaria aangekom wat hulle baarde afgeskeer, hulle klere geskeur en hulleself stukkend gekerf het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad met die doel om dit na die huis van die Here te neem. Ismael, seun van Netanja, het hulle al huilend uit Mispa tegemoetgegaan. Toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom in na Gedalja, seun van Agikam!” Maar net toe hulle in die middel van die dorp kom, het Ismael, seun van Netanja, hulle vermoor en hulle in 'n opgaarput gegooi, hy en die manne by hom. Maar tien van die manne onder hulle het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, want ons het weggesteekte voorrade in die veld – koring, gars, olyfolie en heuning.” Toe het hy daarvan afgesien, en hulle nie saam met hulle volksgenote doodgemaak nie. Die opgaarput waarin Ismael al die lyke van die manne wat hy langs Gedalja neergevel het, gegooi het – dit was die opgaarput wat koning Asa gemaak het weens die bedreiging van Baesa, koning van Israel. Ismael, seun van Netanja, het dit met die gesneuweldes volgemaak. Daarna het Ismael almal wat van die volk oorgebly het, wat in Mispa was, in gevangenskap weggevoer – die dogters van die koning en al die mense wat in Mispa oorgebly het, oor wie Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, vir Gedalja, seun van Agikam, aangestel het. Ismael, seun van Netanja, het hulle weggevoer en vertrek om oor te trek na die Ammoniete. Maar toe Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, hoor van al die kwaad wat Ismael, seun van Netanja, aangerig het, het hulle al die manne geneem en gegaan om teen Ismael, seun van Netanja, te veg. Hulle het hom aangetref by die groot dam by Gibeon. Toe al die mense wat by Ismael was, vir Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings by hom, sien, was hulle bly. Al die mense wat deur Ismael uit Mispa as gevangenes weggevoer is, het omgedraai, teruggekeer en na Joganan, seun van Kareag, gegaan. Maar Ismael, seun van Netanja, het met agt manne van Joganan af weggekom en na die Ammoniete gegaan. Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings by hom, het almal wat van die volk oorgebly het, saamgeneem, almal wat hy van Ismael, seun van Netanja, uit Mispa teruggebring het, nadat dié vir Gedalja, seun van Agikam, neergevel het. Dit was die mans, krygsmanne, vroue en kinders en eunugs wat hy uit Gibeon teruggebring het. Hulle het vertrek en oorgebly by Gerut-Kimham naby Betlehem, om van daar af verder te gaan en Egipte te bereik, weg van die Galdeërs af; want hulle was bang vir hulle. Ismael, seun van Netanja, het immers vir Gedalja, seun van Agikam, vir wie die koning van Babilonië in die land aangestel het, neergevel. Al die bevelvoerders van die leërafdelings en Joganan, seun van Kareag, asook Jesanja, seun van Hosaja, en die hele volk, klein en groot, het nader gegaan en vir die profeet Jeremia gesê: “Laat ons smeekbede asseblief voor u neergelê word, en bid vir ons tot die Here u God, vir hierdie hele oorblyfsel, want ons het as 'n klein klompie oorgebly uit baie, soos u ons met u eie oë hier sien. Laat die Here u God aan ons bekend maak die pad waarop ons moet gaan, en wat ons te doen staan.” Die profeet Jeremia het toe vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Kyk, ek gaan tot die Here julle God bid, soos julle versoek, en ek sal elke woord wat die Here julle antwoord, aan julle bekend maak. Ek sal niks van julle weerhou nie.” En hulle, hulle sê toe vir Jeremia: “Mag die Here 'n ware en betroubare getuie teen ons wees as ons nie presies optree volgens elke woord waarmee die Here u God u na ons stuur nie! Of dit nou goed of sleg is, na die stem van die Here ons God, na wie ons u stuur, sal ons luister, sodat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die Here ons God.” Ná tien dae het die woord van die Here tot Jeremia gekom. Hy het Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, en ook die hele volk, klein en groot, geroep en vir hulle gesê: “So sê die Here, die God van Israel na wie julle my gestuur het om julle smeekbede voor Hom neer te lê, ‘ As julle inderdaad in hierdie land bly, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie; Ek sal julle plant en nie uitruk nie, want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Moenie bang wees vir die koning van Babilonië, vir wie julle so bevrees is nie! Moenie vir hom bang wees nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘want Ek is by julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. Ek sal aan julle barmhartigheid bewys, sodat ook hy julle barmhartig sal wees en julle na julle grond sal laat terugkeer. Maar as julle sê, “Ons wil nie in hierdie land bly nie,” en, sonder om na die stem van die Here julle God te luister, sê, “Nee, na Egipteland wil ons gaan, waar ons nie oorlog sal beleef of die geluid van •ramshorings sal hoor, of broodgebrek sal ly nie; daar wil ons bly” ’ ” – nou dan, hoor daarom die woord van die Here, oorblyfsel van Juda! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “As julle vas van voorneme is om na Egipte te gaan, en julle gaan om as •vreemdelinge daar te woon, dan sal die swaard waarvoor julle bang is, julle daar in Egipteland inhaal. Die hongersnood waaroor julle beangs is – daar in Egipte sal dit op julle hakke sit, en daar sal julle sterf. Al die manne wat van voorneme is om na Egipte te gaan om daar as vreemdelinge te woon, sal deur die swaard, hongersnood en pessiekte sterf. Daar sal nie vir hulle iemand wees wat ontvlug van of ontkom aan die onheil wat Ek oor hulle sal bring nie.” Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Soos my toorn en woede oor die inwoners van Jerusalem losgebars het, so sal my woede oor julle uitbars wanneer julle na Egipte toe gaan. Julle sal 'n voorbeeld van verdoeming, 'n skrikbeeld, 'n vervloeking en 'n bespotting wees; en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.” “Die Here het oor julle uitspraak gelewer, oorblyfsel van Juda, ‘Moenie na Egipte gaan nie!’ Julle moet goed besef dat ek julle vandag gewaarsku het; want julle het julle eie lewens op die spel geplaas toe julle my na die Here julle God gestuur het met die woorde, ‘Bid vir ons tot die Here ons God! Alles wat die Here ons God sê, dra dit presies so aan ons oor, en ons sal dit uitvoer.’ Ek het dit vandag aan julle oorgedra, maar julle luister nie na die stem van die Here julle God oor alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. Daarom, weet vir seker dat julle deur die swaard, hongersnood en pessiekte sal sterf op die plek waarheen julle begeer om te gaan om daar as vreemdelinge te woon.” Net toe Jeremia klaar al die woorde van die Here hulle God vir die hele volk gesê het – al hierdie woorde waarmee die Here hulle God hom na hulle gestuur het – het Asarja, seun van Hosaja, en Joganan, seun van Kareag, en al die aanmatigende manne geantwoord. Hulle het vir Jeremia gesê: “Jy praat leuens! Die Here ons God het jou nie gestuur om te sê, ‘Julle moenie na Egipte gaan om daar as •vreemdelinge te gaan woon nie;’ maar Barug, seun van Nerija, het jou teen ons opgestook om ons so oor te gee in die hand van die Galdeërs om ons dood te maak of ons in ballingskap na Babilonië weg te voer.” Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings en die hele volk het toe nie geluister na die stem van die Here om in die land Juda te bly nie. Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings het almal wat oorgebly het van Juda saamgeneem, hulle wat teruggekom het uit al die nasies waarheen hulle verdryf is om in die land Juda as vreemdelinge te woon – die manne, die vroue en kinders, die dogters van die koning, en al die mense wat Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, by Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, gelaat het, ook die profeet Jeremia en Barug, seun van Nerija. Hulle het in Egipteland aangekom – want hulle het nie na die stem van die Here geluister nie – en tot by Tagpanhes gevorder. Die woord van die Here het toe in Tagpanhes tot Jeremia gekom: “Neem groot klippe, en, terwyl die Judese manne toekyk, steek dit weg in die klei by die steenvorms wat by die ingang na 'n gebou van die farao in Tagpanhes is. Sê dan vir hulle, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan my dienskneg, Nebukadresar, die koning van Babilonië, ontbied, en Ek sal sy troon plaas op hierdie klippe wat Ek hier weggesteek het, en hy sal die mat vir sy troon daaroor uitrol. Hy sal kom en Egipteland verslaan. Wie vir die dood bestem is, sal uitgelewer word aan die dood, wie vir gevangenskap bestem is, aan gevangenskap, wie vir die swaard bestem is, aan die swaard. Hy sal 'n vuur aansteek in die tempels van die gode van Egipte. Hy sal dit afbrand en hulle wegvoer as gevangenes. Hy sal Egipteland skoon pluk soos 'n herder sy kleed skoon pluk van luise, en hy sal ongedeerd daarvandaan wegtrek. Hy sal die klippilare van die sontempel in Egipteland stukkend breek; die tempels van die gode van Egipte sal hy afbrand.” ’ ” Dit is die woord wat tot Jeremia gekom het vir al die Judeërs wat in Egipteland woon, wat in Migdol, Tagpanhes en Nof, en in die land Patros woon: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Julle het self al die onheil beleef wat Ek oor Jerusalem en oor al die dorpe van Juda gebring het. Kyk, dit is vandag 'n puinhoop, met niemand wat daarin woon nie vanweë die kwaad wat hulle gedoen het deur My te tart, deur offers te gaan verbrand en ander gode te dien wat hulle nie geken het nie, nie hulle nie, nie julle nie, en ook nie julle voorouers nie. Ek het aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur om te sê: “Moet tog nie hierdie afstootlike ding doen wat Ek haat nie!” Maar hulle het nie geluister nie en nie gehoor gegee deur hulle van hulle boosheid te bekeer om nie vir ander gode offers te verbrand nie. My woede en my toorn het toe uitgebars en gebrand in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem, en dit het puinhope en woestenye geword, soos dit vandag is.’ “Daarom, so sê die Here, die God van alle magte, die God van Israel, ‘Waarom doen julle julleself so 'n groot skade aan deur man en vrou, kind en suigeling uit Juda uit te roei, en so vir julle nie eers 'n oorblyfsel oor te laat nie? Julle doen dit deur My te tart met die werk van julle hande, deur vir ander gode offers te verbrand in Egipteland, waarheen julle gekom het om as •vreemdelinge te woon, sodat julle julleself sodoende uitroei en 'n vervloeking en bespotting word onder al die nasies van die wêreld. Het julle die booshede van julle voorouers vergeet en die booshede van die konings van Juda en die booshede van hulle vroue, en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle in die land Juda en in die strate van Jerusalem aangerig het? Tot vandag toe is hulle nie gebroke of bevrees nie, en volg hulle nie my wet en vaste voorskrifte wat Ek aan julle en julle voorouers voorgehou het nie.’ “Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Kyk, Ek is vasbeslote om hulle kwaad aan te doen, om die hele Juda uit te roei. Ek sal die oorblyfsel van Juda wegraap, hulle wat vasbeslote was om na Egipteland te gaan om daar as vreemdelinge te woon; hulle sal almal omkom. In Egipteland sal hulle val deur die swaard; van honger sal hulle omkom; van die kleinste tot die grootste sal deur die swaard en van honger omkom. Hulle sal 'n voorbeeld van verdoeming, 'n skrikbeeld, 'n vervloeking en 'n bespotting word. Ek sal van hulle wat in Egipteland woon, rekenskap eis soos Ek dit van Jerusalem geëis het met die swaard, met hongersnood en met pessiekte, sodat nie een uit die oorblyfsel van Juda wat gegaan het om daar in Egipteland as vreemdelinge te woon, sal ontkom of ontvlug om te kan terugkeer na die land Juda nie, die land waarna hulle sal verlang om heen terug te gaan, om daar te gaan woon. Ja, hulle sal nie teruggaan nie, net 'n paar vlugtelinge.’ ” Al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode offers verbrand, en al die vroue wat daar gestaan het, 'n groot byeenkoms, ja, die hele volk wat in Egipteland in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord: “Die woord wat jy aan ons in die Naam van die Here verkondig het – ons gaan nie na jou luister nie. Trouens, ons sal alles wat ons met ons eie monde onderneem het, beslis doen: om offers te verbrand vir die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons voorouers, ons konings en ons •hoë amptenare, in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Toe was ons versadig met brood en het dit met ons goed gegaan; rampe het ons toe nie beleef nie. Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel offers te verbrand en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en van hongersnood omgekom.” Die vroue het gesê: “En toe ons vir die koningin van die hemel offers verbrand en vir haar drankoffers uitgegiet het, het ons miskien sonder die medewete van ons mans vir haar stervormige koekies gemaak om haar af te beeld, en vir haar drankoffers uitgegiet?” Toe het Jeremia aan die hele volk, die manne en vroue, ja, die hele volk wat besig was om hom te antwoord, gesê: “Die offers wat julle verbrand het in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem, julle en julle voorouers, julle konings en julle hoë amptenare en die volk van die land, het die Here nie daaraan gedink en het dit nie in sy gedagtes opgekom nie? Die Here kon dit nie meer verduur nie, vanweë julle bose dade, vanweë die afstootlike dinge wat julle gedoen het. Toe het julle land 'n puinhoop, 'n woesteny en 'n vervloeking geword, sonder inwoners, soos dit vandag is. Juis vanweë die feit dat julle offers verbrand het, en dat julle teen die Here gesondig en nie na die stem van die Here geluister het nie, en nie sy wet, sy vaste voorskrifte en sy bepalings gevolg het nie; ja, daarom het hierdie onheil julle getref soos dit vandag is.” Jeremia het toe vir die hele volk en vir al die vroue gesê: “Hoor die woord van die Here, ganse Juda wat in Egipteland is! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Julle en julle vroue, julle het met julle eie monde verklaar en dit met julle hande uitgevoer: “Ons sal beslis ons geloftes wat ons afgelê het, nakom om vir die koningin van die hemel offers te verbrand en vir haar drankoffers uit te giet.” Doen dan julle geloftes beslis gestand! Voer julle geloftes beslis uit!’ Daarom, hoor die woord van die Here, ganse Juda wat in Egipteland woon, ‘Kyk, Ek lê 'n eed af by my groot Naam;’ sê die Here, ‘in die hele Egipteland sal my Naam nooit weer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda wat sê, “So waar as my Heer, die Here, leef!” nie. Kyk, Ek waak oor hulle ten kwade en nie ten goede nie. Al die mans van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en hongersnood omkom, totdat hulle vernietig is. En hulle wat aan die swaard ontkom, net 'n paar, sal uit Egipteland na die land Juda terugkeer. Die hele oorblyfsel van Juda wat na Egipteland gekom het om as vreemdelinge daar te woon, sal dan weet wie se woord standhou, myne of hulle s'n. En dit sal vir julle die teken wees,’ is die uitspraak van die Here, ‘dat Ek van julle rekenskap eis op hierdie plek, sodat julle kan weet dat my woorde wat ten kwade teen julle gerig is, beslis sal standhou.’ So sê die Here: ‘Kyk, Ek gaan farao Hofra, koning van Egipte, oorgee in die hand van sy vyande en in die hand van hulle wat sy lewe soek, soos Ek Sedekia, koning van Juda, oorgegee het in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, sy vyand, wat sy lewe gesoek het. ’ ” Die woord wat die profeet Jeremia vir Barug, seun van Nerija, gesê het toe hy hierdie woorde uit die mond van Jeremia in 'n •boekrol geskryf het in die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda: “So sê die Here, die God van Israel oor jou, Barug, ‘Jy sê: “Wee my! Want die Here het droefheid by my smart gevoeg. Ek is moeg van my gesug, en ek kry geen rus nie.” ’ “So moet jy vir hom sê, ‘So sê die Here: “Kyk, wat Ek gebou het, gaan Ek afbreek, en wat Ek geplant het, gaan Ek uitruk – hierdie hele land. En jy, soek jy vir jouself groot dinge? Moet dit nie soek nie, want kyk, Ek gaan onheil bring oor alle mense,” is die uitspraak van die Here. “Maar Ek sal jou lewe vir jou gee as buit, op al die plekke waarheen jy sal gaan.” ’ ” Die woord van die Here wat tot Jeremia, die profeet, gekom het oor die nasies. Oor Egipte. Oor die leër van farao Neko, koning van Egipte, wat by die Eufraatrivier, by Karkemis was, en wat verslaan is deur Nebukadresar, die koning van Babilonië, in die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda. “ Kry die klein- en grootskilde gereed, gaan nader vir die geveg! Span die perde in, en ruiters, klim op! Neem plek in met die helms, vryf die steekspiese blink, trek die harnasse aan! Waarom sien Ek hulle is verskrik? Hulle val terug, hulle helde word verpletter, hulle slaan op die vlug, hulle draai nie terug nie! Daar is verskrikking aan alle kante,” is die uitspraak van die Here. “Die vinniges kan nie wegkom nie, die helde kan nie vrykom nie. In die Noorde, langs die Eufraatrivier, het hulle gestruikel en geval. Wie is dit wat styg soos die Nyl, soos wanneer die deltastrome sy waters donderend laat afkom? Egipte styg op soos die Nyl, soos wanneer die deltastrome water donderend laat afkom. Hy sê, ‘Ek sal styg, ek sal die aarde oordek; ek wil stede en die inwoners daarin tot niet maak.’ Trek op, perde! Jaag soos besetenes, strydwaens! Die helde moet optrek: Kus en Put, wat skilde dra, manne van Lud, wat die boog span. Hierdie dag behoort aan my Heer, die Here, Heerser oor alle magte – 'n dag van wraak om Hom te wreek op sy teenstanders. Die swaard sal verslind en versadig wees, hom vol drink aan hulle bloed. Ja, 'n offerfees is daar vir my Heer, die Here, Heerser oor alle magte, in 'n land in die noorde by die Eufraatrivier. “ Gaan op na Gilead en kry balsem, jongvrou, dogter van Egipte! Tevergeefs dat jy die medisyne meer maak; daar is geen herstel vir jou nie. Die nasies hoor van jou skande, jou gejammer vul die aarde; want helde struikel oor mekaar, al twee val saam.” Dit is die woord wat die Here gesê het vir die profeet Jeremia, oor die koms van Nebukadresar, die koning van Babilonië, om Egipteland aan te val: “ Maak dit bekend in Egipte, laat dit hoor in Migdol! Ja, laat dit hoor in Nof en Tagpanhes! Julle moet sê, ‘Neem jou plek in en wees voorbereid, want rondom jou verslind die swaard!’ Waarom is jou magtiges weggevee? Hulle bly nie staan nie, want die Here het hulle omgestoot. Hy laat baie struikel, die een val selfs oor die ander. Hulle sê, ‘Staan op! Laat ons teruggaan na ons volk, na ons geboorteland, weg van die gewelddadige swaard.’ Daar roep hulle uit, ‘Die farao, koning van Egipte, is net 'n lawaaimaker! Hy het die regte oomblik laat verbygaan.’ “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Koning, Here, Heerser oor alle magte is sy Naam, “soos Tabor bo die berge, en soos Karmel bo die see, sal die een wees wat kom. Kry jou bondel gereed vir die ballingskap, inwoner, dogter van Egipte! Want Nof sal 'n woesteny word, dit sal verwoes lê, sonder inwoners. “Egipte is 'n baie mooi jong koei, 'n blindevlieg uit die noorde het gekom, het gekom. Selfs haar huurtroepe in haar geledere is soos vetgemaakte bulkalwers; maar ook hulle draai om, vlug saam weg. Hulle bly nie staan nie; want die dag van hulle teenspoed het vir hulle aangebreek, die tyd wanneer met hulle afgereken word. Sy klink soos 'n slang wat wegseil, want met 'n leërmag ruk hulle op; met byle kom hulle na haar soos dié wat hout bymekaarmaak. Hulle kap haar bos af, al is dit ondeurdringbaar,” is die uitspraak van die Here; “want hulle is meer as sprinkane, ontelbaar is hulle. Die dogter van Egipte staan beskaamd, sy is oorgegee in die hand van 'n volk uit die noorde.” Die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, het gesê: “Kyk, Ek gaan rekenskap eis van Amon uit No, van die farao, van Egipte, van haar gode, van haar konings – ja, van die farao en hulle wat op hom vertrou. Ek sal hulle oorgee in die hand van dié wat hulle lewens soek: in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, en in die hand van sy dienaars. Daarna sal Egipte bewoon word soos in die verre verlede.” Dit is die uitspraak van die Here. “ Maar jy, jy moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob! Moet jou nie laat afskrik nie, Israel! Want kyk, Ek gaan jou verlos uit 'n ver plek, jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap. Jakob sal terugkeer; hy sal stil en rustig wees, en niemand sal hom opjaag nie. Jy, ja jy, moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob!” is die uitspraak van die Here, “want Ek is by jou. Ja, Ek sal 'n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; net aan jou sal Ek geen einde maak nie. Ek sal jou matig straf, maar jou beslis nie ongestraf laat nie.” Die woord van die Here wat tot Jeremia, die profeet, gekom het oor die Filistyne, voordat die farao Gasa verslaan het. So sê die Here: “Kyk, water gaan styg uit die noorde, en dit gaan 'n spruit in vloed word. Dit sal die land en alles daarop oorstroom, stede en die inwoners daarin. Mense sal om hulp roep; al die inwoners van die land sal huil oor die stampgeluid van sy hingste se hoewe, oor die gedruis van sy strydwaens, oor die gedreun van hulle wiele – ouers draai nie om na kinders nie, omdat hulle hande slap hang – oor die dag wat kom om al die Filistyne te verdelg, om elke helper van Tirus en Sidon wat oorgebly het, uit te roei.” Ja, die Here verdelg die Filistyne, die oorblyfsel van die eiland Kaftor. 'n Kaalgeskeerde plek verskyn op die kop van Gasa; Askelon is vernietig. Oorblyfsel van hulle vlakte, hoe lank nog gaan jy jou stukkend kerf? Helaas! Swaard van die Here, hoe lank nog sal jy nie rus hê nie? Keer terug na jou skede; kom tot rus en wees stil! Hoe kan hy dan rus hê? Die Here het hom 'n opdrag gegee teen Askelon en die kusstreek. Daar het Hy hom aangestel. Oor Moab. So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Wee Nebo, want dit word verwoes. Kirjatajim staan beskaamd, dit word ingeneem. Die toevlugsoord staan beskaamd, is verslae. Daar is geen lofprysing meer vir Moab nie; in Hesbon word onheil teen haar beplan; ‘Kom ons roei haar uit onder die nasies!’ Ook jy, Madmen, sal stilgemaak word; die swaard is agter jou aan! Daar klink 'n noodroep uit Goronajim, ‘Verwoesting en totale ineenstorting!’ Moab is verpletter; sy geringes laat 'n noodroep hoor. Ja, die opdraande na Lugit – met 'n gehuil, met 'n gehuil, gaan hulle daar op. Ja, teen die afdraande na Goronajim word angskrete oor die vernietiging gehoor. Vlug! Ontkom net met julle lewens! Word soos 'n jenewerstruik in die woestyn! Aangesien jy jou vertroue stel op jou dade, en op jou voorrade, sal ook jy ingeneem word. En Kemos sal in ballingskap uitgaan, en sy priesters en bevelvoerders saam met hom. Die verwoester kom na elke dorp, en geen dorp sal vrykom nie. Die vallei sal ten gronde gaan, die plato sal verwoes word,” is wat die Here gesê het. Rig 'n gedenkteken op vir Moab, want hy raak heeltemal vervalle; sy dorpe word 'n woesteny, sonder iemand wat daarin woon. Vervloek is hy wat die Here se werk met laksheid doen, en vervloek is hy wat sy swaard weerhou van bloed. Moab is rustig van sy jeug af; hy is soos wyn, ongestoord op sy droesem, hy is nie oorgeskink van kruik tot kruik nie – in ballingskap het hy nie gegaan nie. Daarom behou hy sy smaak, en sy geur verander nie. Daarom, “kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek keldermeesters na hom sal stuur, en hulle sal hom afgiet. Sy kruike sal hulle leegmaak, en sy houers verbrysel. Moab sal beskaamd staan oor Kemos, net soos die huis van Israel beskaamd gestaan het oor Bet-El, die bron van hulle vertroue. Hoe kan julle sê, ‘Ons is helde, bekwame manne, as dit kom by oorlogvoering?’ Moab is verwoes, die vyand het opgetrek teen sy dorpe, en die keur van sy jong manne het afgegaan vir die slagting,” is die uitspraak van die Koning; Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Die teenspoed van Moab kom nader; sy onheil is baie vinnig op pad. Betuig meegevoel met hom, almal in sy omgewing, almal wat sy naam ken! Sê, ‘Hoe is die magtige septer verbreek, die pragtige staf!’ “Klim af van die eresetel, en gaan sit op die dor aarde, inwoner, dogter van Dibon! Want die verwoester van Moab trek teen jou op; hy vernietig jou versterkte stede. Gaan staan langs die pad en kyk uit, inwoners van Aroër! Vra hom uit wat vlug, en haar wat vrykom, en sê, ‘Wat het gebeur?’ Moab staan beskaamd; ja, hy is verslae. Huil en roep om hulp! Maak dit bekend by die Arnon dat Moab verwoes is! Die oordeel het gekom oor die land op die plato – oor Golon, Jahas, en Mefaät; oor Dibon, Nebo, en Bet-Diblatajim; oor Kirjatajim, Bet-Gamul, en Bet-Meon; oor Kerijot en Bosra; oor al die dorpe van die land Moab, dié wat ver is en dié wat naby is. Die horing van Moab is afgekap, sy voorarm is gebreek,” is die uitspraak van die Here. “ Maak hom dronk, want teenoor die Here het hy hom groot gehou. Laat Moab rol in sy braaksel, sodat ook hy uitgelag word. Of is Israel nie deur jou uitgelag nie? Of is hy tussen diewe betrap, dat jy, so dikwels as jy oor hom praat, meewarig die kop skud? Verlaat die dorpe, gaan woon in die rotsklowe, inwoners van Moab! Word soos 'n duif wat nesmaak in die wande van 'n ravyn. Ons het gehoor van die trots van Moab, van die groot vermetelheid, sy hoogmoed, sy trots, sy grootdoenerigheid en sy hooghartigheid. Ek self ken sy woedebuie, maar dit is blote skyn. Sy grootpratery rig niks uit nie,” is die uitspraak van die Here. Daarom – oor Moab huil ek, namens die hele Moab roep ek om hulp. Oor die mense van Kir-Geres kla hulle. Meer as oor Jaser, huil ek oor jou, wingerd van Sibma. Jou ranke het die see oorgesteek; tot by Jaser het dit gestrek. Op jou somervrugte en jou druiweoes het die verwoester toegesak. “Vreugde en gejuig is weggeneem uit die vrugteboorde en uit die land van Moab. Aan wyn uit die parskuipe het Ek 'n einde gemaak. Die druiwetrappers trap nie. Die krete is nie vreugdekrete nie. Die hulpgeroep strek vanaf Gesbon tot by Elale; tot by Jahas laat hulle hulle stemme hoor, van Soar af tot by Goronajim en Eglat-Selisija. Ja, ook die waters by Nimrim word 'n afgryslike plek. Ek maak 'n einde aan Moab,” is die uitspraak van die Here, “aan hulle wat rook laat opstyg op die offerhoogtes, wat offers verbrand vir hulle gode. Daarom, oor Moab kla my hart soos fluite, soos fluite kla my hart oor die mense van Kir-Geres. So is die wins wat hulle gemaak het, daarmee heen. Ja, elke kop is kaalgeskeer, en elke baard is afgeskeer. Op alle hande is snymerke, en om die heupe rouklere. Op al die dakke van Moab en op sy dorpspleine is daar net roubeklag. Want Ek het Moab gebreek soos 'n kruik wat niemand meer wil hê nie,” is die uitspraak van die Here. Hoe verslae is hy nie! Hulle huil. Hoe het Moab nie beskaamd sy rug gedraai nie! Moab het lagwekkend geword; hy is 'n toonbeeld van verskrikking vir almal rondom hom. Want so sê die Here: “Kyk, soos 'n arend vlieg hy; hy sprei sy vlerke uit oor Moab. Keriot is ingeneem, die bergvestings is verower; die helde van Moab se harte is op daardie dag soos die hart van 'n vrou in barensnood. Moab word uitgedelg, sodat dit geen volk meer is nie; want teenoor die Here het hy hom groot gehou. Verskrikking, 'n vanggat, 'n vangnet wag op julle, inwoners van Moab,” is die uitspraak van die Here. “Wie vlug vir die geluid van verskrikking, val in die vanggat; wie uitklim uit die vanggat, word gevang in die vangnet. Ja, Ek bring hierdie dinge oor Moab – die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word, ” is die uitspraak van die Here. “ In die skaduwees van Gesbon staan vlugtelinge kragteloos, want 'n vuur het uitgegaan uit Gesbon, 'n vlam uit die huis van Sihon. Dit het die slape van Moab verteer, die skedel van die rumoermakers. Wee jou, Moab! Die volk van Kemos is tot niet. Ja, jou seuns is weggeneem in gevangenskap, jou dogters in ballingskap. Maar Ek sal die lot van Moab verander aan die einde van die dae, ” is die uitspraak van die Here. Tot hiertoe die oordeel oor Moab. Oor die Ammoniete. So sê die Here: “Het Israel geen kinders nie? Of het hy geen erfgenaam nie? Waarom het Milkom dan Gilead in besit geneem, en woon sy volk in die dorpe? Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek teen Rabba van die Ammoniete krygsgeskreeu sal laat opklink, en dit sal 'n verwoeste puinhoop word. Sy omliggende dorpies sal afgebrand word, en Israel sal dié wat hom sy besit ontneem het, in besit neem,” sê die Here. “Huil, Gesbon, want Ai is verwoes! Roep om hulp, dogters van Rabba! Trek rouklere aan! Rou en swerf rond tussen die klipmure, want Milkom gaan in ballingskap, en sy priesters en bevelvoerders saam met hom. Waarom roem jy op jou valleie, op die oorvloed water in jou vallei, afvallige dogter? Sy is die een wat op haar skatte vertrou en sê, ‘Wie sal tot by my kom?’ Kyk, Ek gaan vrees oor jou bring, vir almal rondom jou,” is die uitspraak van my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. “Julle sal verdryf word, elkeen reguit vorentoe, en niemand sal die vlugtelinge byeenbring nie. “Maar daarna sal Ek die lot van die Ammoniete verander,” is die uitspraak van die Here. Oor Edom. So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Is daar nie meer wysheid in Teman nie? Is raad verlore onder verstandiges? Het hulle wysheid verrot? Vlug, draai om, kruip diep weg, inwoners van Dedan! Want Esau se teenspoed bring Ek oor hom in die tyd wanneer Ek van hom rekenskap eis. As druiweplukkers na jou toe kom, sal hulle nie 'n naoes laat oorbly nie? As dit diewe in die nag is, verniel hulle net tot hulle genoeg het. Maar Ek, Ek het Esau kaalgestroop, Ek het sy skuilplekke blootgelê; as hy wil wegkruip, kan hy nie. Sy nageslag is uitgedelg, ook sy volksgenote en sy bure; hy is nie meer daar nie. Laat jou vaderloses maar agter, Ék sal hulle aan die lewe hou; en jou weduwees – op My kan hulle vertrou!” Ja, so sê die Here: “Kyk, hulle wat nie veroordeel is om die beker te drink nie, moet dit wel drink. En jy, is jy die een wat ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar jy sal beslis drink. Want by Myself lê Ek 'n eed af,” is die uitspraak van die Here, “dat Bosra 'n skrikbeeld, 'n bespotting, 'n puinhoop en 'n vervloeking sal word, en al sy dorpe ewige puinhope sal wees.” Ek het 'n boodskap gehoor wat van die Here af kom. 'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur: “Kom byeen! Trek teen haar op! Maak gereed vir die geveg!” “Ja, kyk, gering maak Ek jou onder die nasies; verag deur die mense. Die vrees wat jy inboesem, die verwaandheid van jou hart, het jou mislei, jy wat tuis is in die rotsskeure, wat die heuweltoppe beset. Al maak jy jou nes so hoog soos dié van 'n arend, van daar af sal Ek jou afbring, ” is die uitspraak van die Here. “ Edom sal 'n woesteny word; elkeen wat by hom verbygaan sal verslae wees en fluit oor al sy wonde. Soos ná die verwoesting van Sodom en Gomorra en hulle buurdorpe, ” sê die Here, “sal niemand daar woon nie, sal geen mens daar oorbly nie. “Kyk, soos wanneer 'n leeu opkom uit die trots van die Jordaan na 'n weiplek aan 'n standhoudende stroom, ja, so sal Ek hulle vinnig daarvandaan laat weghardloop; en wie daartoe verkies is, sal Ek daar aanstel. Want wie is soos Ek? Wie kan My voor die gereg daag? Wie is hierdie herder wat voor My sal standhou?” Daarom, luister na die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Edom geneem het, en na sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Hulle sal hulle beslis wegsleep, selfs die kleinstes van die kudde. Oor hulle sal Hy beslis hulle weiding laat verwoes. Van die geluid van hulle val sal die aarde bewe. Die hulpgeroep – tot by die Rietsee sal die geluid daarvan gehoor word. Kyk, soos 'n arend styg hy op en vlieg; hy sprei sy vlerke uit oor Bosra. Die helde van Edom se harte is op daardie dag soos die hart van 'n vrou in barensnood. Oor Damaskus. “Hamat en Arpad staan beskaamd, want hulle het slegte nuus gehoor. Van kommer wieg hulle heen en weer asof op die see wat nie tot rus kan kom nie. Damaskus se moed begewe haar; sy draai om om te vlug, paniek het haar in sy greep; benoudheid en geboortepyne het haar beetgepak soos vir 'n vrou wat geboorte gee. Hoe is dit dan dat die beroemde stad nie verlate is nie, my vreugdevolle vesting? Daarom sal haar jong manne val op haar stadspleine, en al haar krygsmanne sal omkom op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Ek sal 'n vuur aansteek in die stadsmuur van Damaskus; dit sal die vestings van Ben-Hadad verteer.” Oor Kedar en oor die koninkryke van Gasor, wat deur Nebukadresar, die koning van Babilonië, verslaan is. So sê die Here: “Maak julle gereed! Trek op teen Kedar en vernietig die mense uit die ooste! Die vyand vat hulle tente en kleinvee weg; hulle tentdoeke, al hulle goed en hulle kamele vat hulle vir hulleself. Hulle sal oor hulle uitroep, ‘Verskrikking aan alle kante!’ “Vlug, bly aan die swerf! Kruip diep weg, inwoners van Gasor!” is die uitspraak van die Here. “Want Nebukadresar, die koning van Babilonië, het 'n besluit teen julle geneem, en 'n plan teen julle beraam. “Maak julle gereed! Trek op teen 'n sorgelose nasie wat veilig woon, wat nie poortdeure of sluitbalke het nie, wat alleen woon,” is die uitspraak van die Here. “Hulle kamele sal oorlogsbuit word, en hulle menigte vee geroofde goed. Ek sal hulle in alle windrigtings verstrooi, hulle wat die slape skoonskeer. Van alle kante sal Ek vir hulle teenspoed bring,” is die uitspraak van die Here. “ Gasor sal 'n lêplek vir jakkalse word, 'n woesteny vir altyd. Niemand sal daar woon nie, geen mens sal daar oorbly nie.” Die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, aan die begin van die regering van Sedekia, koning van Juda: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan die boog van Elam breek, die kern van hulle mag. Ek sal teen Elam vier winde bring van die vier eindes van die hemel; en hulle in al hierdie windrigtings verstrooi. Daar sal nie 'n nasie wees by wie dié wat uit Elam verdryf is, nie kom nie. Ek sal Elam verpletter voor hulle vyande, voor dié wat hulle lewens soek; Ek sal onheil oor hulle bring – my brandende toorn’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘Ek sal die swaard agter hulle aanstuur, totdat Ek hulle vernietig het. Ek sal my troon in Elam neersit. Van daar sal Ek koning en bevelvoerders ombring,’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander,’ ” is die uitspraak van die Here. Dit is die woord wat die Here deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Galdeërs: “Maak dit bekend onder die nasies; laat hulle dit hoor! Hou 'n banier omhoog; laat hulle dit hoor! Moet dit nie wegsteek nie! Julle moet sê, ‘Babel is ingeneem! Bel staan beskaamd, Marduk staan verslae. Babel se afgode staan beskaamd, haar afgodsbeelde staan verslae.’ Want 'n nasie trek teen haar op uit die noorde, hy sal haar land 'n woesteny maak; daar sal geen inwoner in haar wees nie. Mense sowel as diere swerf rond, hulle trek weg. “In daardie dae en in daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal die Israeliete kom, hulle en die Judeërs saam. Terwyl hulle loop en huil, sal hulle die Here hulle God soek. Na Sion sal hulle die pad vra, met hulle gesigte daarheen gedraai. Hulle sal kom en hulleself verbind aan die Here met 'n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie. Verlore kleinvee was my volk; hulle herders het hulle laat afdwaal, hulle op die berge laat verdwaal. Van berg na heuwel het hulle gegaan, hulle het hulle rusplek vergeet. Almal wat hulle raakgeloop het, het hulle verslind; en hulle vyande het gesê, ‘Ons is nie skuldig nie, aangesien hulle teen die Here gesondig het, teen Hom, die ware tuiste, die hoop van hulle voorouers, die Here.’ “ Vlug uit Babel! Gaan weg uit die land van die Galdeërs! Wees soos bokramme voor die kleinvee! Want kyk, Ek maak hulle wakker en laat hulle teen Babel optrek – 'n bondgenootskap van groot nasies uit 'n land in die noorde. Hulle sal gevegslinies teen haar opstel, van daardie kant af sal sy ingeneem word. Hulle pyle is soos dié van 'n held wat sukses behaal; hy keer nie met leë hande terug nie. Galdeë sal oorlogsbuit word, al sy buitmakers sal versadig word,” is die uitspraak van die Here. “Ja, wees maar vrolik, wees maar uitgelate, plunderaars van my erfenis! Ja, bokspring maar soos 'n verskalf in groen gras, runnik maar soos hingste! Julle moeder sal erg beskaamd staan; sy wat julle in die wêreld gebring het, sal verleë wees. Kyk, sy is die geringste van die nasies, 'n woestyn, 'n droë land, 'n dor vlakte. Vanweë die Here se grimmigheid sal sy nie bewoon word nie; sy sal heeltemal verlate wees. Elkeen wat by Babel verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. “Stel die gevegslinies op teen Babel aan alle kante – almal wat die boog span! Skiet op haar, moenie 'n pyl spaar nie! Want teen die Here het sy gesondig. Hef die krygsgeskreeu teen haar aan van alle kante! Sy gee oor, haar torings val, haar mure word afgebreek; want dit is die wraak van die Here. Wreek julle op haar! Soos wat sy gedoen het, doen dit aan haar. Roei die saaiers in Babel uit, ook dié wat die sekel vashou in die oestyd. Weens die gewelddadige swaard sal elkeen van hulle na sy volk draai, en elkeen van hulle na sy land toe vlug. “Israel is 'n verwilderde skaap; leeus het hom verdryf. Eers het die koning van Assirië hom verslind; en nou teen die einde het Nebukadresar, die koning van Babilonië, aan sy bene geknaag. ” Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan van die koning van Babilonië en sy land rekenskap eis, soos wat Ek van die koning van Assirië rekenskap geëis het. Ek sal Israel terugbring na sy weiveld, en hy sal op Karmel en Basan wei. Op die bergland van Efraim en in Gilead sal hy versadig word. In daardie dae en in daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal die sondeskuld van Israel gesoek word, maar dit sal nie daar wees nie, ook die sondes van Juda, maar dit sal nie gevind word nie. Want Ek sal dié wat Ek laat oorbly, vergewe. “Teen die land Meratajim, trek daarteen op, en teen die inwoners van Pekod! Agtervolg hulle met doodslag en die banvloek! ” is die uitspraak van die Here. “Doen alles wat Ek jou beveel!” Daar is die rumoer van oorlog in die land – totale ineenstorting! Hoe is die hamer van die hele aarde nie stukkend gekap en verpletter nie! Hoe het Babel nie 'n skrikbeeld onder die nasies geword nie! “Ek het vir jou 'n strik gestel, en jy is toe ook gevang, Babel; maar jy het dit self nie besef nie. Jy is betrap en ook gevange geneem; want met die Here wou jy kragte meet.” Die Here het sy voorraadkamer oopgemaak en die wapens van sy vervloeking uitgehaal. Want daar is 'n taak vir my Heer, die Here, Heerser oor alle magte, in die land van die Galdeërs. “Dring dit binne van alle kante af! Maak sy graanskure oop! Stapel die inwoners op soos graanhope en tref die land met die banvloek! Daar moet vir die land niks oorbly nie. Slaan al sy jong bulle dood, hulle moet afgaan om geslag te word. Want hulle dag het gekom, die tyd wanneer met hulle afgereken word. Daar is die geluid van vlugtelinge, en van hulle wat ontkom het uit die land Babilonië; hulle is daar om in Sion die wraak te verkondig van die Here, ons God – die wraak vir sy •tempel. Roep die boogskutters op na Babel, almal wat die boog span! Beleër haar reg rondom! Daar moet geen wegkomkans wees nie. Vergeld haar in ooreenstemming met haar dade; net soos sy gedoen het, doen dit aan haar; want teen die Here het sy vermetel opgetree, teen die Heilige van Israel. Daarom sal haar jong manne val op haar stadspleine, en al haar krygsmanne sal omkom op daardie dag,” is die uitspraak van die Here. “Dit is Ek teen jou, vermetele,” is die uitspraak van my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. “Want jou dag het gekom, die tyd waarop Ek met jou afreken. Die vermetele sal struikel en val, en niemand sal hom ophelp nie. Ek sal 'n vuur in sy dorpe aansteek, en dit sal sy hele omgewing verteer. ” So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Die Israeliete word verdruk, en die Judeërs saam met hulle. Almal wat hulle weggevoer het, hou hulle terug, hulle weier om hulle te laat gaan. Hulle losser is sterk, Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Hy sal beslis hulle regstryd voer, sodat Hy die aarde tot rus kan bring, maar onrus kan skep vir die inwoners van Babel. “Trek die swaard teen die Galdeërs,” is die uitspraak van die Here, “teen die inwoners van Babel, teen haar •hoë amptenare en teen haar wyse manne! Trek die swaard teen die orakelpriesters! Hulle sal dwase word. Trek die swaard teen haar helde! Hulle sal verslae staan. Trek die swaard teen haar perde en strydwaens, teen die hele gemengde bevolking in haar midde! Hulle sal soos vroue word. Trek die swaard teen haar voorraadkamers! Dit sal geplunder word. Trek die swaard teen haar waters! Dit moet opdroog! Want dit is 'n land van afgodsbeelde; en deur dié drogbeelde raak hulle waansinnig. Daarom sal woestyndiere saam met hiënas daar bly; ook steenuile sal daarin bly. Sy sal vir ewig nie weer bewoon word nie, van geslag tot geslag nooit weer 'n tuiste bied nie. Soos ná die verwoesting van Sodom en Gomorra en hulle buurdorpe deur God,” is die uitspraak van die Here, “sal niemand daar woon nie, sal geen mens daar oorbly nie. “ Kyk, 'n volk kom uit die noorde, 'n groot nasie en talle konings. Hulle is wakker gemaak by die uithoeke van die aarde. Boog en kromswaard hou hulle gereed, harteloos is hulle, en genadeloos. Hulle klink soos die see wat dreun; op perde ry hulle. Hulle is manne wat in 'n gevegslinie opgestel is teen jou, dogter van Babel. Die koning van Babilonië het berig gekry oor hulle, en sy moed het hom begewe. Benoudheid het hom beetgepak, angs soos wanneer 'n vrou geboorte gee. Kyk, soos wanneer 'n leeu opkom uit die trots van die Jordaan na 'n weiplek aan 'n standhoudende stroom, ja, so sal Ek hulle vinnig daarvandaan laat weghardloop; en wie daartoe verkies is, sal Ek daar aanstel. Want wie is soos Ek? Wie kan My voor die gereg daag? Wie is hierdie herder wat voor My sal standhou?” Daarom, luister na die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Babel geneem het, en na sy planne wat Hy teen die land van die Galdeërs beraam het: Hulle sal hulle beslis wegsleep, selfs die kleinstes van die kudde. Oor hulle sal Hy beslis hulle weiding laat verwoes. Oor die uitroep “Babel is verower!” bewe die aarde. 'n Hulpgeroep word onder die nasies gehoor. So sê die Here: “Kyk, Ek gaan teen Babel en teen die inwoners van Leb Qamai 'n vernietigende wind laat opsteek. Ek gaan teen Babel vreemdes stuur; hulle sal haar uitwan en haar land kaal stroop. Ja, hulle sal reg rondom haar teen haar stelling inneem op die dag van onheil. Die boogskutter moet nie sy boog kan span nie, nie in sy harnas orent kan kom nie. Moenie haar jong manne bejammer nie, tref haar hele leër met die banvloek! Deurboordes sal val in die land van die Galdeërs, en die swaar gewondes in haar strate. Want Israel en Juda is nie weduwees nie, nie sonder hulle God, sonder die Here, Heerser oor alle magte, nie, maar hulle land was vol skuld voor die Heilige van Israel.” Vlug weg uit Babel, laat elkeen sy eie lewe red! Sorg dat julle nie omkom weens haar sondeskuld nie. Want dit is 'n tyd van wraak vir die Here; ooreenkomstig wat sy verdien, reken Hy met haar af. Babel was 'n goue beker in die hand van die Here, 'n beker wat die hele wêreld dronk gemaak het. Van haar wyn het die nasies gedrink; daarom het die nasies waansinnig geraak. Onverwags kom Babel tot 'n val, stort sy ineen. Huil oor haar, kry balsem vir haar pyn! Miskien kan sy genees word. “Ons wou Babel gesond maak, maar sy kan nie genees word nie. Verlaat haar! Kom ons gaan elkeen na sy eie land; want tot aan die hemel reik die oordeel oor haar, en tot aan die wolke strek dit.” Die Here het ons regte weer na vore gebring. Kom, laat ons in Sion vertel van die daad van die Here ons God. Maak skerp die pyle! Vul die kokers! Die Here het die gees van die konings van Medië aangevuur; want sy plan is teen Babel gerig, om haar te verwoes. Ja, dit is die wraak van die Here, die wraak vir sy •tempel. Rig by die stadsmuur van Babel 'n banier op! Versterk die wagposte; plaas wagte uit! Kry dié wat in hinderlae lê, gereed! Ja, die Here het sowel beplan as uitgevoer wat Hy vir die inwoners van Babel gesê het. Jy wat langs baie waters woon, met baie skatte, jou einde het aangebreek, jou lewensdraad is geknip. Die Here, Heerser oor alle magte, het by Homself 'n eed afgelê: “Ek maak jou vol mense, soos met voetgangersprinkane – hulle sal oorwinningskrete oor jou aanhef.” Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gevestig het deur sy wysheid, en deur sy insig die hemel oopgespan het – in sy stem, wanneer Hy dit laat hoor, is daar die gedruis van water in die hemel. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind vry uit sy voorraadkamers. Alle mense bewys hulleself dom, sonder kennis. Elke goudsmid staan beskaamd oor sy afgodsbeelde, want sy gietsels is bedrog – daar is nie asem in hulle nie. Hulle is nikswerd afgode, bespotlike maaksels. In die tyd wanneer daar met hulle afgereken word, gaan hulle tot niet. Die erfdeel van Jakob is nie soos hulle nie; want Hy is die Een wat alles vorm, en Israel is die stam van sy erfenis – die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam. “ Jy is vir My 'n knuppel, 'n krygswapen. Met jou verbrysel Ek nasies; met jou verwoes Ek koninkryke. Met jou verbrysel Ek perde en ruiters; met jou verbrysel Ek strydwaens en bemanning. Met jou verbrysel Ek mans en vroue; met jou verbrysel Ek ou mense en jong mense; met jou verbrysel Ek jong mans en jong meisies. Met jou verbrysel Ek herders en kuddes; met jou verbrysel Ek landbouers en trekdiere; en met jou verbrysel Ek •streekgoewerneurs en landvoogde. “Ek vergeld Babel en alle inwoners van Galdeë al hulle boosheid wat hulle voor julle oë in Sion aangerig het,” is die uitspraak van die Here. “Kyk, dit is Ek teen jou, berg van die verwoester, verwoester van die hele aarde!” is die uitspraak van die Here. “Ek gaan my hand teen jou uitstrek, jou van die kranse laat afrol. Ek gaan van jou 'n uitgebrande berg maak, sodat daar uit jou nie 'n klip as hoeksteen of 'n klip as fondamentsteen geneem kan word nie. Ja, 'n woesteny sal jy vir altyd wees, ” is die uitspraak van die Here. Hou 'n banier omhoog in die land! Blaas die •ramshoring onder die nasies! Heilig nasies teen haar! Roep die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas teen haar op! Stel 'n bevelvoerder teen haar aan! Laat perde optrek soos stekelrige sprinkane! Heilig nasies teen haar – die konings verbonde aan Medië, hulle streekgoewerneurs, al hulle landvoogde, en elke land waaroor hulle heerskappy voer. Die aarde skud en krimp ineen, want die planne van die Here teen Babel word uitgevoer – om die land Babilonië 'n woesteny te maak, sonder inwoners. Die helde van Babel het opgehou veg; hulle sit in die bergvestings. Hulle kragte is uitgeput; hulle het geword soos vroue. Haar wonings is aan die brand gesteek, haar sluitbalke is gebreek. Hardlopers ontmoet mekaar in die hardloop, die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babilonië berig te bring dat sy stad aan alle kante ingeneem word: “Die driwwe is oorgeneem! Die biesies is aan die brand gesteek! Die krygsmanne is angsbevange!” Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Die dogter van Babel is soos 'n dorsvloer gereed om vasgetrap te word: Nog net 'n rukkie, dan breek die oestyd vir haar aan.” “Nebukadresar, die koning van Babilonië, het ons verswelg, ons leeg gedrink, ons soos 'n leë houer neergesit. Hy het ons soos 'n seemonster ingesluk; hy het sy buik gevul met ons as 'n lekkerny, en ons uitgespoeg. Mag die geweld teen ons en ons bloedverwante rus op Babel!” sê die inwoners van Sion. “Mag my bloed rus op die inwoners van Galdeë!” sê Jerusalem. Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan jou regstryd voer en jou wraak voltrek. Ek sal haar see drooglê en haar bron laat opdroog. Babel sal klipstapels word, 'n lêplek vir woestynjakkalse, 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit, sonder inwoners. Saam brul hulle soos jong leeus; hulle grom soos leeuwelpies. Wanneer hulle opgewerk is, sit Ek vir hulle 'n feesmaal voor en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate raak. Hulle sal 'n ewige slaap ingaan en nie weer wakker word nie,” is die uitspraak van die Here. “Ek sal hulle soos lammers neertrek vir die slagting, soos skaap- en bokramme. “ Hoe word Sjesjag nie ingeneem, die roem van die hele aarde nie verower nie! Hoe word Babel nie 'n skrikbeeld onder die nasies nie! Die see stoot oor Babel; met die gedruis van sy golwe is sy bedek. Haar stede word 'n woesteny, 'n droë land en 'n dor vlakte, 'n land waarin niemand sal woon nie, en waar geen mens sal deurtrek nie. Ek sal van Bel rekenskap eis in Babel, en wat hy ingesluk het, uit sy mond uithaal. Na hom sal nasies nie meer stroom nie; selfs Babel se stadsmuur sal val. “ Gaan uit haar uit, my volk! Red elkeen van julle sy eie lewe – weg van die brandende toorn van die Here! Anders raak julle lafhartig en bang wanneer gerugte in die land gehoor word. Een gerug doen hierdie jaar die rondte, 'n ander een die volgende jaar, ‘Daar is geweld in die land, regeerder teen regeerder!’ Daarom, kyk, daar kom dae wanneer Ek rekenskap sal eis van die afgodsbeelde van Babel; haar hele land sal beskaamd staan, al haar gewondes sal binne-in haar val. Hemel en aarde, alles daarin, sal oor Babel jubel; want uit die noorde kom hulle na haar – die verwoesters,” is die uitspraak van die Here. “ Ook Babel moet val vir die gesneuweldes van Israel, soos gesneuweldes van die hele aarde ook vir Babel geval het. Julle wat aan die swaard ontkom het, gaan weg! Moenie bly staan nie! Dink daar in die verte aan die Here! Jerusalem sal in julle harte opkom.” “Ons staan beskaamd, want ons moes bespotting aanhoor; vernedering het ons gesigte bedek. Ja, vreemdes het in die gewyde plekke van die huis van die Here ingegaan.” “Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek oor haar afgodsbeelde rekenskap sal eis; dwarsoor haar hele grondgebied sal gewondes kreun. Al sou Babel hemelhoog verrys, al sou sy haar versterkte hoogte ontoeganklik maak, van My af sal verwoesters na haar toe kom,” is die uitspraak van die Here. Daar klink 'n hulpgeroep op uit Babel, die geluid van totale ineenstorting uit die land van die Galdeërs. Want die Here gaan Babel verwoes, en die groot rumoer uit haar laat verdwyn. Die vyande se golwe sal dreun soos magtige waters, die geluid van hulle gedruis sal weergalm. Ja, teen haar, teen Babel, trek 'n verwoester op. Haar helde word gevange geneem, hulle boë word stukkend gebreek; want 'n God van vergelding is die Here – Hy sal ten volle vergeld. “Ek maak haar bevelvoerders, haar wyses, haar streekgoewerneurs, haar landvoogde en haar helde dronk. Hulle sal 'n ewige slaap ingaan en nie weer wakker word nie,” is die uitspraak van die Koning. Die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam. So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Die dik stadsmuur van Babel sal heeltemal afgebreek word; haar hoë poorte sal afgebrand word. Volke het hulle vermoei vir niks, en nasies vir die vuur; hulle het hulle afgesloof.” Dit is die saak wat die profeet Jeremia aan Seraja, seun van Nerija, seun van Magseja, opgedra het, toe hy saam met Sedekia, koning van Juda, in die vierde jaar van sy koningskap, na Babel gegaan het. Seraja was kwartiermeester. Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, al hierdie woorde wat oor Babel geskryf is, in een •boekrol neergeskryf. Jeremia het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy sorg dat jy al hierdie woorde hardop lees en sê, ‘ Here, U het self oor hierdie plek gesê dat U dit sal vernietig, sodat daar nie meer inwoners sal wees nie, nie mens of dier nie, maar dat dit vir altyd 'n woesteny sal wees.’ Wanneer jy hierdie boekrol dan klaar gelees het, moet jy 'n klip daaraan vasmaak, dit in die middel van die Eufraat gooi en sê, ‘Só sal Babel sink en nie weer opkom nie, vanweë die onheil wat Ek oor haar bring.’ ” “Hulle het hulle afgesloof.” Tot daar was dit die woorde van Jeremia. Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Jojakim gedoen het. Ja, vanweë die Here se toorn het dit met Jerusalem en Juda gebeur, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid verwerp het. Sedekia het teen die koning van Babilonië in opstand gekom. In die negende jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadresar, die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom, hy met sy hele leër, en dit beleër. Hy het beleëringswerke reg rondom die stad opgerig, en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, is 'n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne het gevlug en in die nag met die pad deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin uit die stad gegaan, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. Maar die leër van die Galdeërs het die koning agternagesit. Hulle het Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Sy hele leër het verstrooi geraak, weg van hom af. Hulle het die koning gevange geneem en hom opgevat na die koning van Babilonië, na Ribla in die land Hamat, en hy het vonnisse oor hom uitgespreek. Die koning van Babilonië het die seuns van Sedekia voor sy oë tereggestel. Ook al die •hoë amptenare van Juda het hy in Ribla tereggestel. Sedekia se oë het hy verblind en hom met bronskettings geboei. Die koning van Babilonië het hom na Babel geneem en hom in 'n plek van bewaking gesit tot die dag van sy dood. In die vyfde maand, op die tiende van die maand – dit was in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadresar, die koning van Babilonië – het Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, wat in diens van die koning van Babilonië gestaan het, in Jerusalem aangekom. Hy het die huis van die Here, die paleis van die koning en al die huise in Jerusalem, ja, elke groot gebou, afgebrand. Die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was, het al die stadsmure van Jerusalem reg rondom afgebreek. Sommige van die armes van die volk en die res van die volk wat in die stad oorgebly het, asook die drosters wat na die koning van Babilonië oorgeloop het, en die res van die vakmanne, is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. Sommige van die armes in die land is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, agtergelaat as wingerdboere en landbouers. Die bronspilare wat in die huis van die Here was, die verskuifbare staanders, asook die bronssee wat in die huis van die Here was, het die Galdeërs stukkend gebreek, en al die brons na Babel weggedra. Die potte, skoppies, messe, offerbakke, skottels, en al die bronsgereedskap waarmee die tempeldiens verrig is, het hulle gevat. Die bakke, die vuurpanne, die offerbakke, die potte, die kandelare, die skottels en die komme, wat van suiwer goud en suiwer silwer was, het die aanvoerder van die lyfwag gevat. Wat betref die twee pilare, die een See en die twaalf bronsbeeste daaronder, die verskuifbare staanders wat koning Salomo vir die huis van die Here gemaak het – die brons van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. Wat die pilare betref: Agttien el was die hoogte van elke pilaar, en 'n lyn van veertien el het dit omspan; die wand se dikte was vier vingers; dit was hol. Daar was 'n bronskapiteel bo-op, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granate op die kapiteel reg rondom, alles van brons. Dieselfde geld vir die tweede pilaar met sy granate. Daar was ses-en-negentig granate aan die kante. Die granate op die vlegwerk rondom was altesaam een honderd. Die aanvoerder van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, Sefanja, die priester tweede in rang, en die drie deurwagters geneem, en uit die stad het hy een paleisamptenaar wat oor die krygsmanne aangestel was, saam met sewe van die manne wat die koning bygestaan het en wat nog in die stad aangetref kon word, asook die sekretaris, die hoë amptenaar van die leër wat die oproep vir die volk van die land se krygsdiens hanteer het, en sestig man uit die volk van die land wat in die stad te vinde was. Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babilonië in Ribla geneem. Die koning van Babilonië het hulle in Ribla, in die land Hamat, neergevel en doodgemaak. So is Juda van sy grond af in ballingskap weggevoer. Dit is die getal mense wat deur Nebukadresar weggevoer is: in die sewende jaar 3 023 Judeërs, en in die agttiende regeringsjaar van Nebukadresar, 832 persone uit Jerusalem. In die drie-en-twintigste regeringsjaar van Nebukadresar het Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, 745 Judeërs weggevoer. Al die persone saam was 4 600. In die sewe-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die vyf-en-twintigste van die maand, het Ewil-Merodag, die koning van Babilonië, in die jaar toe hy koning geword het, aan Jojagin, koning van Juda, 'n weldaad bewys en hom uit die gevangenis vrygelaat. Hy het vriendelik met hom gepraat en hom 'n sitplek gegee hoër as die sitplekke van die konings wat saam met hom in Babel was en sy gevangenisklere vervang. Hy het altyd, solank hy geleef het, aan die koning se tafel geëet. En sy lewensonderhoud – 'n vaste lewensonderhoud – is deur die koning van Babilonië aan hom gegee, soveel as wat hy elke dag nodig gehad het, tot die dag van sy dood, al sy lewensdae. Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was. Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies. Die prinses onder die provinsies, verrig dwangarbeid. Bedroef huil sy snags, die trane stroom oor haar wange. Daar is niemand onder haar geliefdes wat haar troos nie. Al haar vriende het haar verraai en haar vyande geword. Gebuk onder lyding en geweldige onderdrukking, het Juda in ballingskap gegaan. Sy bevind haar onder die nasies; sy vind geen rus nie. Almal wat haar agtervolg, het haar in haar benoudheid ingehaal. Die paaie na Sion treur, want niemand reis na haar feeste toe nie; al haar poorte is verlate, haar priesters sug. Haar jong meisies is bedroef, en self het sy dit bitter. Haar teenstanders het die oorhand gekry; haar vyande lewe rustig, want die Here het haar laat ly, omdat sy soveel keer oortree het. Haar kinders moes as ballinge voor teenstanders uit loop. Weg is al die luister van die dogter van Sion. Haar leiers het soos rooitakbokke sonder weiding geword, kragteloos het hulle voor hulle agtervolgers uit gevlug. In die tye van nood en omswerwinge onthou Jerusalem alles wat vir haar kosbaar was in die verlede. Toe haar volk in die hand van teenstanders val, was daar vir haar geen helper nie. Die teenstanders het na haar gekyk, hulle het oor haar ondergang gelag. Groot is die sonde van Jerusalem; daarom het sy onrein geword. Almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het. En sy, sy kreun en draai weg. Tot aan haar klere kleef haar onreinheid. Sy het nie gedink aan wat van haar sou word nie. Haar ondergang was verskriklik; daar is niemand wat haar troos nie. Here, kyk tog na my nood, want die vyand is vermetel. Teenstanders het alles wat vir haar kosbaar was, ingepalm; ja, sy moes toekyk hoe die nasies haar heiligdom betree, hulle vir wie U belet het om in u gewyde vergadering te kom. Kreunend soek haar hele volk na kos. Om te oorleef, het hulle hulle kleinode verruil vir iets om te eet. Kyk tog, Here, sien raak hoe ek verag word. Laat dit julle koud, julle almal wat met die pad verbygaan? Sien dit tog raak en kyk! Is daar nog smart soos die smart wat Hy my aangedoen het, wat die Here my op die dag van sy brandende toorn laat ly het? Met vuur uit die hoogte het Hy my gebeente oorweldig. Hy het 'n vangnet vir my voete gespan, my laat terugsteier. Hy het my aan verlatenheid oorgelewer; heeldag voel ek swak. Die juk van my oortredings is swaar, dit is vasgemaak deur sy hand; dit druk op my nek. Hy het my kragte laat ingee; my Heer het my oorgegee in die hande van diegene teen wie ek geen weerstand kan bied nie. My Heer het al my sterk manne binne-in my byeen gejaag – Hy het 'n feestyd oor my uitgeroep vir die slagting van my jong soldate. My Heer het die jongmeisie, die dogter van Juda, in die parskuip vertrap. Aanhoudend huil ek hieroor, my oë stroom van trane, want die trooster wat my kon opbeur, is ver van my af. My kinders is verpletter, want die vyand het die oorhand verkry. Sion strek haar hande uit, maar daar is niemand om haar te troos nie. Die Here het almal om Jakob teen hom opgeroep as sy teenstanders. Jerusalem het tussen hulle 'n onrein vrou geword. 'n Regverdige is die Here; ja, ek het teen sy woord gerebelleer. Luister tog, alle volke, en sien my smart raak; my jong vroue en jong manne het in ballingskap gegaan. Ek het geroep na dié wat my liefhet, maar hulle het my in die steek gelaat. My priesters en oudstes het in die stad omgekom toe hulle na kos gesoek het om te oorleef. Kyk, ek is benoud, Here, my ingewande gloei. In my krimp my hart ineen, want ek was baie opstandig. Buite maai die swaard af, en in die huis is dit soos die dood. Hulle hoor dat ek kreun, maar niemand troos my nie. Al my vyande hoor van my rampspoed; hulle juig omdat U dit veroorsaak het. Laat kom die dag wat U bepaal het, sodat dit met hulle kan gaan soos met my. Laat al hulle boosheid voor U kom, en doen aan hulle wat U aan my gedoen het oor al my oortredings. Ja, ek sug baie en my hart is ontsteld. Ag, hoe het my Heer in sy toorn die dogter van Sion met wolke bedek. Hy het vanuit die hemel die sieraad van Israel op die aarde neergewerp. Hy het op die dag van sy toorn nie eers die voetbank van sy voete ontsien nie. Genadeloos het my Heer al die nedersettings van Jakob verswelg. In sy gramskap het Hy die versterkte stede van die dogter van Juda afgebreek, hulle met die grond gelyk gemaak. Hy het die koninkryk en haar leiers onteer. In sy siedende toorn het Hy die mag van Israel volledig gebreek. Hy het sy regterhand daarvan weerhou om die vyande te keer, en in Jakob het Hy soos 'n vlammende vuur gebrand wat alles rondom hom verteer. Hy het sy boog soos 'n vyand gespan, met 'n ferm regterhand – Hy het soos 'n teenstander almal wat kosbaar was, om die lewe gebring. In die tent van die dogter van Sion het Hy sy woede soos 'n vuur uitgestort. My Heer het soos 'n vyand geword; Hy het Israel verswelg. Hy het al haar vestings verswelg en sy versterkte stede vernietig. Hy het verdriet en droefheid by die dogter van Juda laat toeneem. Hy het sy woonplek afgebreek soos 'n skuiling in 'n tuin; sy ontmoetingsplek het Hy vernietig. Die Here het fees en Sabbat in Sion vergete laat raak; in die toorn van sy verontwaardiging het Hy koning en priester geminag. My Heer het sy altaar verwerp; sy heiligdom het Hy verstoot; Hy het die mure van sy vestings in die hand van 'n vyand oorgelewer. Hulle het in die huis van die Here gejuig soos op 'n feesdag. Die Here het beplan om die dogter van Sion se mure te vernietig. Hy het 'n maatlyn gespan, sy hand nie van verdelging weerhou nie; Hy het skans en stadsmuur laat weeklaag – saam stort hulle ineen. Haar stadspoorte het in die grond weggesak; Hy het hulle sluitbalke stukkend gebreek. Haar koning en haar leiers leef sonder leiding onder die nasies; selfs haar profete ontvang nie 'n visioen van die Here nie. Swyend sit die oudstes van die dogter van Sion op die grond. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi, en rouklere aangetrek. Die jong vroue van Jerusalem het hulle koppe na die aarde af gebuig. My oë is verblind deur trane; my ingewande gloei. My hart is stukkend oor die ineenstorting van die dogter van my volk, want kinders en babas kwyn weg op die dorpspleine. Hulle vra vir hulle ma's, “Waar is die koring en wyn?” terwyl hulle soos gewondes wegkwyn op die stadspleine, die lewe uit hulle uitvloei in hulle ma's se arms. Wat kan ek vir jou as voorbeeld voorhou, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Wat kan ek aan jou gelykstel, sodat ek jou kan vertroos, jong meisie, dogter van Sion? Waarlik, so wyd soos die see is die breuk in jou. Wie kan jou genees? Jou profete se visioene is vir jou nutteloos en niksseggend. Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou ballingskap te verhoed nie. Die visioene wat hulle aan jou oorgedra het, was nutteloos en misleidend. Almal wat hier verbyreis, slaan hulle hande oor jou saam; hulle fluit en skud hulle koppe oor die dogter van Jerusalem: “Is dit nou die stad wat mense volmaak mooi noem, 'n vreugde vir die hele aarde?” Al jou vyande het hulle mond vol oor jou; hulle fluit en kners op hulle tande, en sê: “Ons het uitgedelg! Waarlik, dit is die dag waarop ons gewag het – ons het dit bereik, ons het dit gesien.” Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het; Hy het sy woord vervul wat Hy reeds lank gelede bepaal het: Hy het genadeloos uitgeroei en vyande oor jou verbly, jou teenstanders die mag laat verkry. Hulle harte het geroep na my Heer. Muur van die dogter van Sion, laat jou trane dag en nag soos 'n rivier stroom; gun jouself geen rus nie, laat jou oë nie tot rus kom nie. Staan op, roep in die nag as die nagwake begin. Stort jou hart soos water voor my Heer uit. Lig jou hande op na Hom ter wille van die lewe van jou kinders wat van honger op elke straathoek wegkwyn. Kyk, Here, en sien tog raak aan wie U dit gedoen het! Moet vroue dan hulle vrug, gesonde kinders, eet? Moet priester en profeet dan in die heiligdom van my Heer doodgemaak word? Oud en jonk lê op die grond in die strate; my jong vroue en my jong manne het deur die swaard geval. U het hulle op die dag van u toorn doodgemaak; U het hulle genadeloos geslag. Van oraloor het U dié wat my bedreig, bymekaargeroep soos op 'n feesdag; en op die dag van die Here se toorn het niemand ontsnap of ontkom nie. My vyand het dié wat ek voortgebring en grootgemaak het, uitgewis. Ek is die man wat ellende beleef het deur die slae van die Here se gramskap. Hy het my gedryf, my in die donker laat loop, sonder lig. Ja, Hy het sy hand teen my gelig, telkens weer, die hele dag. Hy het my vleis en vel verteer, my bene gebreek. Hy het my beleër, my omring met bitterheid en moeite. Hy het my in donker plekke laat bly soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur rondom my gebou, uitkom kan ek nie; Hy het my boeie van brons swaar gemaak. Selfs al skree ek en roep om hulp, sluit Hy Hom af vir my gebed. Met gekapte klip het Hy my pad toegebou, Hy het my paaie laat kronkel. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my paaie verlê, my braak laat lê, my 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan, my as teiken opgestel vir die pyl. Die pyle uit sy koker het Hy in my niere laat indring. Ek word uitgelag deur al my mense; hulle spotlied klink heeldag op. Met bitter kruie het Hy my versadig, my in oormaat wildeals laat drink. Hy het my tande op gruis laat afslyt; Hy het my in die as vertrap. Vrede is my ontneem, die goeie het ek vergeet. Ek het gesê: My toekoms en my hoop op die Here het verdwyn. Dink aan my nood en my swerwersbestaan, aan die wildeals en gif. Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom. Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek. Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die Here. Goed is dit vir 'n jong man om 'n juk in sy jeug te dra. Hy moet alleen sit in stilte, want die Here het dit op hom gelê. Hy moet maar sy gesig in die stof hou; miskien is daar hoop. Hy moet sy wang draai na dié wat hom slaan; laat hy versadig word van skande. My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde. Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin. Dat al die gevangenes van die aarde vertrap word; dat die reg van 'n mens voor die Allerhoogste geskend word; dat enige mens se regsaak verydel word – sien my Heer dit nie? Wie sê iets en dit gebeur as my Heer dit nie gebied het nie? Kom sowel die goeie as die slegte nie uit die mond van die Allerhoogste nie? Wat kla 'n mens terwyl hy nog leef, 'n jong man oor die straf op sy sonde? Laat ons ons handelswyse ondersoek en toets, en laat ons na die Here terugkeer. Laat ons ons harte saam met ons hande ophef na God in die hemel. Ons het oortree; ons was opstandig. U het ons nie vergewe nie. U het U in toorn gehul en ons agtervolg; U het genadeloos doodgemaak. U het U afgeskerm met 'n wolk waardeur geen gebed kan dring nie. Uitvaagsels en vullis het U ons gemaak onder die volke. Al ons vyande het hulle mond vol oor ons. Angs en afgrond het ons lot geword, verwoesting en ineenstorting. Uit my oë vloei strome water oor die ineenstorting van die dogter van my volk. Sonder onderbreking, sonder einde, bly my trane loop, totdat die Here uit die hemel neerkyk en dit sien. Hoe pynlik om al die dogters van my stad so te sien! Verbete en sonder rede het my vyande my soos 'n voël gejag. Hulle het my lewe in 'n opgaarput uitgedoof en klippe op my gegooi. Die water het tot oor my kop gestyg en ek het gedink ek is verlore. Ek roep u naam, o Here, uit die diepste put. U het my stem gehoor. Moet tog nie u ore sluit vir my geroep om uitkoms nie. U het na my toe gekom op die dag toe ek na U geroep het. U het gesê: “Moenie bang wees nie.” U, my Heer, het my regsaak behartig; U het my lewe gered. U, Here, het die onreg wat my aangedoen is, gesien; lewer 'n regverdige uitspraak oor my. U het al hulle wraakgierigheid gesien, al hulle planne vir my. U het hulle uittarting gehoor, Here, al hulle planne teen my, alles wat oor my teenstanders se lippe kom, en hulle geskinder oor my die hele dag. Of hulle sit en of hulle opstaan, kyk tog, hulle spotlied gaan oor my. U, o Here, sal hulle volgens die werke van hulle hande vergeld. U maak hulle harte onbeskaamd; mag u vloek oor hulle kom! U sal hulle in toorn vervolg en hulle uitroei onder die hemel van die Here. Ag, hoe het die goud sy glans verloor, die suiwer goud verdof; die heilige edelstene lê rondgestrooi op al die straathoeke. Die kosbare kinders van Sion, hulle was hulle gewig in fyngoud werd; ag, nou word hulle gereken as kleipotte, maaksels van 'n pottebakker se hande! Selfs jakkalse laat drink, hulle soog hulle kleintjies; die dogter van my volk het wreed geword, soos volstruise in die woestyn. Van dors kleef die tong van die suigeling aan sy verhemelte vas; kinders bedel brood, maar niemand breek dit vir hulle nie. Hulle wat lekkernye geëet het, vergaan in die strate; hulle wat met skarlaken grootgeword het, omhels nou ashope. Die skuld van die dogter van my volk was erger as die sondes van Sodom – Sodom, wat in 'n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen. Die vorste van Sion was helderder as sneeu en witter as melk; hulle liggame was rooier as koraal, hulle voorkoms soos •lasuursteen. Hulle is nou swarter as roet en word nie op straat herken nie; hulle vel verskrompel aan hulle gebeente, dit is uitgedor soos hout. Hulle wat deur die swaard getref word, is beter daaraan toe as hulle wat deur hongersnood getref word, ja, hulle wat wegkwyn, wat ly vanweë die gebrek aan opbrengs van die landerye. Die hande van liefdevolle vroue het hulle kinders gekook; hulle het hulle voedsel geword toe die dogter van Sion ineengestort het. Die Here het sy woede laat uitwoed, sy brandende toorn uitgestort; Hy het 'n vuur in Sion aangesteek wat haar fondamente vernietig het. Die konings van die aarde, ook al die bewoners van die wêreld, kon nie glo dat teenstanders en vyande die poorte van Jerusalem sou binnedring nie. Dit was die gevolg van die sonde van haar profete en die skuld van haar priesters, hulle wat die bloed van regverdiges daar vergiet het. Blind het hulle deur die strate gestrompel, met bloed besoedel; niemand kon aan hulle klere raak nie. “Gaan weg, •onreines!” het die mense vir hulle geskreeu. “Gaan weg! Gaan weg! Moenie aanraak nie!” Toe hulle op die vlug geslaan het, ja, toe hulle onder die nasies rondgeswerf het, het die mense gesê: “Hulle mag nie meer hier bly nie!” Die Here self het hulle verstrooi, Hy sien nie meer na hulle om nie. Priesters word nie gerespekteer nie; vir die oudstes is daar geen genade nie. Met oë wat dof raak, het ons bly uitsien na hulp – maar tevergeefs; in ons wagtorings het ons bly uitkyk vir 'n nasie – wat nie kan red nie. Ons kon nie 'n tree gee sonder dat hulle op ons jag maak nie; ons kon nie op straat verskyn nie. Ons einde was naby, ons dae was getel; ja, ons einde het aangebreek. Ons agtervolgers was vinniger as arende in die lug; oor die berge het hulle op ons hakke gebly, in die woestyn het hulle ons voorgelê. Ons lewensasem, die gesalfde van die Here, is in hulle vangkuile gevang – die een in wie se skadu ons gedink het ons onder die nasies sou leef! Wees maar vrolik en bly, dogter van Edom wat woon in die land Us; ook aan jou sal die beker gegee word, jy sal dronk word en jouself ontbloot. Jou skuld is vereffen, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie. Vir jou skuld sal Hy jou laat betaal, dogter van Edom, Hy gaan jou sonde blootlê. Onthou, Here, wat met ons gebeur het; kyk tog, en sien ons vernedering raak! Ons erfenis is oorhandig aan vreemdes, ons huise aan buitelanders. Weeskinders het ons geword – ons is sonder 'n vader; ons moeders is soos weduwees. Ons betaal vir ons drinkwater; ons hout kom teen 'n prys. Ons agtervolgers blaas in ons nekke; ons is uitgeput, ons word nie rus gegun nie. Ons moes 'n verdrag sluit met Egipte, ook met Assirië, om met brood versadig te word. Ons voorouers het gesondig; hulle is nie meer daar nie, maar ons dra hulle skuld. Slawe heers oor ons; niemand red ons uit hulle hand nie. In lewensgevaar verkry ons ons brood, weens die swaard in die woestyn. Ons vel gloei soos 'n oond; ons brand van honger. Vroue is in Sion verkrag, jong meisies in die stede van Juda. Vorste is aan hulle hande opgehang; oudstes is met minagting behandel. Jong manne moet met meulstene werk; jong seuns steier onder hout. Oudstes het uit die stadspoort verdwyn, ook die jong manne se snarespel. Vreugde het verdwyn uit ons hart; ons dans het in roubeklag verander. Die kroon het van ons kop geval. Wee ons, want ons het gesondig. Hieroor het ons hart gebreek, hieroor het ons oë dof geword: oor die berg Sion verlate is, oor jakkalse daar ronddwaal. U, Here, U heers vir ewig. U troon is van geslag tot geslag. Waarom vergeet U ons vir altyd, waarom verlaat U ons vir goed? Bring ons terug na U toe, Here, sodat ons kan terugkeer; maak ons dae nuut soos voorheen, tensy U ons heeltemal verwerp het, tensy U uitermate woedend vir ons is. In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde dag van die maand, was ek tussen die ballinge langs die Kebarrivier. Die hemel het toe oopgegaan, en ek het visioene van God gesien. Op die vyfde van die maand, dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin, het die woord van die Here duidelik tot die priester Esegiël, seun van Busi, gekom in die land van die Galdeërs aan die Kebarrivier. Die hand van die Here was daar op hom. Ek het gesien, kyk, 'n stormwind kom uit die noorde, 'n groot wolkmassa met 'n vuur van weerligstrale wat aanhoudend blits, en 'n helder gloed rondom die wolkmassa. Daarin, in die vuur, was daar iets wat soos witgoud skitter. Binne-in die vuur was daar die gestalte van vier wesens. Dit is hoe hulle gelyk het: Hulle het die gestalte van mense gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit; hulle hoewe was soos kalfshoewe en het soos gepoleerde brons geskitter. Daar was mensehande onder hulle vlerke aan vier kante. Wat die gesigte en vlerke van al vier betref: Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie afgedraai wanneer hulle beweeg het nie; elkeen het reguit vorentoe beweeg. Wat die voorkoms van hulle gesigte betref: Elkeen van die vier het die gesig van 'n mens gehad, die gesig van 'n leeu aan die regterkant, die gesig van 'n bul aan die linkerkant, en die gesig van 'n arend. So was hulle gesigte. Hulle vlerke was oopgesprei na bo, elkeen met twee vlerke wat aan dié van die ander raak, en twee vlerke wat die liggaam bedek. Elkeen het reguit vorentoe beweeg. Waarheen die gees wou gaan, het hulle ook gegaan, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg. Wat die vorm van die wesens betref: Hulle het gelyk soos gloeiende kole vuur wat brand, hulle het gelyk soos fakkels. Die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens. Die vuur het 'n helder gloed gehad, en uit die vuur het weerligstrale geflits. Die wesens het so heen en weer beweeg dat dit gelyk het soos weerligstrale. Toe ek die wesens bekyk, sowaar, toe is daar aan die voorkant langs elk van die vier wesens 'n wiel op die grond. Wat die voorkoms en bou van die wiele betref: Dit het soos •chrisoliet geskitter en al vier het een en dieselfde vorm gehad. Dit het gelyk of hulle gemaak was van 'n wiel binne 'n wiel. Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in vier rigtings beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg het. En hulle vellings, dié was hoog en angswekkend; al vier hulle vellings was reg rondom vol oë. Wanneer die wesens beweeg, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opstyg, het die wiele saam opgestyg. Waarheen die gees wou gaan, het die wesens ook gegaan. Die wiele het saam met die wesens opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele, en wanneer die wesens staan, staan hulle. Wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam met hulle op; ja, die gees van die wesens was in die wiele. Bokant die koppe van die wesens was daar, in die vorm van 'n koepel, iets wat geskitter het soos kristal – angswekkend, gespan bo-oor hulle koppe. Onder die koepel was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek. Elkeen het twee vlerke gehad waarmee hulle hulle liggame bedek het. Ek het die geluid van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van 'n mensemassa, soos die geluid van 'n leërmag. Wanneer hulle stilstaan, het hulle hulle vlerke laat sak. Daar was 'n geluid bokant die koepel wat oor die koppe van die wesens uitgestrek het. Wanneer die wesens gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak. Bokant die koepel wat bo hulle koppe was, was daar iets wat soos •lasuursteen lyk, in die vorm van 'n troon; en daarbo, op wat soos 'n troon lyk – daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens. Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in 'n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur 'n helder gloed. Die helder gloed rondom het gelyk soos 'n reënboog wat in die wolke verskyn op 'n reëndag. Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek 'n stem hoor praat. Hy het vir my gesê: “Mensekind, staan regop, dan sal Ek met jou praat.” 'n Gees het oor my gekom terwyl Hy met my praat, en dit het my regop laat staan. Ek hoor toe iemand praat met my. Hy het vir my gesê: “Mensekind, Ek stuur jou na die Israeliete toe, na daardie rebelse nasies wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorouers het teen My oortree tot op die dag van vandag. Dié kinders het stroewe gesigte en harde harte. Ek stuur jou na hulle en jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here. ’ En hulle, of hulle nou luister of verseg om te luister – want hulle is die rebelse huis – hulle sal besef dat daar 'n profeet onder hulle was. Maar jy, mensekind, jy moet nie bang wees vir hulle of vir hulle woorde nie. Moenie bang wees nie, al is dorings en distels jou voorland en al sit jy by skerpioene. Vir hulle woorde moet jy nie bang wees nie, en deur hulle gesigte moet jy jou nie laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. Jy moet my woorde vir hulle sê, of hulle luister of verseg om te luister, want hulle is opstandig. En jy, mensekind, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie opstandig wees soos die rebelse huis nie. Maak jou mond wyd oop en eet wat Ek vir jou gee. ” Ek sien toe, kyk, daar is 'n hand uitgestrek na my – met 'n •boekrol! Hy het dit voor my oopgerol. Op die voor- en agterkant daarvan was daar geskryf; treurliedere, versugtinge en weeklagte was daarop neergeskryf. Hy sê toe vir my: “Mensekind, wat jy nou kry, moet jy eet. Eet hierdie •boekrol en gaan praat met die huis van Israel.” Ek het my mond oopgemaak, en Hy het my daardie boekrol laat eet. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, jou maag moet jy voed, en jou ingewande moet jy vul met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Ek het dit geëet, en dit was so soet soos heuning in my mond. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, gaan na die huis van Israel en sê vir hulle my woorde, want jy word nie na 'n volk gestuur met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal nie, maar na die huis van Israel – nie na baie volke met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal waarvan jy die woorde nie begryp nie. Ek verseker jou, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle wel na jou geluister het, maar die huis van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie na My luister nie. Ja, die hele huis van Israel is hardkoppig en hard van hart. Kyk, Ek maak jou gesig net so stug soos hulle s'n, en Ek maak jou net so hardkoppig soos hulle. Soos 'n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy mag nie vir hulle bang wees en jy mag jou nie deur hulle laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. ” Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, al my woorde wat Ek vir jou sê, neem dit ter harte, en luister met gespitste ore. Gaan dan na die ballinge, na jou volksgenote. Praat met hulle en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here, ’ of hulle nou luister of verseg om te luister.” 'n Gees het my opgelig, en ek het agter my die geluid van 'n harde dreuning gehoor toe die heerlikheid van die Here van sy plek af opstyg, ook die geluid van die wesens se vlerke wat teen mekaar klap, die geluid van die wiele langs hulle en die geluid van die harde dreuning. 'n Gees het my opgelig en my weggeneem. Ek het gegaan – bitter en ontstemd in my gemoed. Die hand van die Here was ferm oor my. Ek het by die ballinge uitgekom wat in Tel Aviv, langs die Kebarrivier woon; en daar waar hulle woon, daar het ek sewe dae lank tussen hulle gesit, heeltemal verbysterd. Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: “ Mensekind, as 'n wag stel Ek jou aan vir die huis van Israel. Wanneer jy uit my mond woorde hoor, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê dat hy beslis sal sterf, en jy waarsku hom nie, jy praat nie om die goddelose te waarsku teen sy goddelose lewenswyse, sodat hy kan leef nie, sal hy, die goddelose, sterf oor sy sondeskuld; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar jy, as jy 'n goddelose waarsku, en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid en sy goddelose lewenswyse nie, sal hy deur sy sondeskuld sterf, en jy, jy het dan jou eie lewe gered. “Wanneer 'n regverdige van sy regverdige lewe afwyk en onreg pleeg, en Ek 'n struikelblok voor hom neersit, sal hy sterf. As jy hom nie waarsku teen sy sonde nie, sal hy sterf; sy regverdige dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie. Sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. En jy, as jy 'n regverdige waarsku om nie te sondig nie, en hy, die regverdige, sondig nie, sal hy beslis bly leef, omdat hy hom laat waarsku het; en jy, jy het dan jou eie lewe gered.” Die hand van die Here het daar oor my gekom, en Hy het vir my gesê: “Staan op, gaan na die laagte toe, daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe opgestaan en uitgegaan na die laagte. En kyk, daar staan die heerlikheid van die Here, net soos die heerlikheid wat ek gesien het langs die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. 'n Gees het oor my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan, sluit jouself binne-in jou huis toe. Wat jou betref, mensekind, kyk, toue sal om jou gesit word en jy sal daarmee vasgebind word, sodat jy nie meer kan uitgaan om tussen die mense te wees nie. Jou tong sal Ek aan jou verhemelte laat kleef. Jy sal stom wees, en nie meer iemand wat hulle teregwys nie, want hulle is 'n rebelse huis. Maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak. Dan moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here. ’ Wie luister, sal luister, en wie verseg om te luister, sal verseg om te luister, want hulle is 'n rebelse huis.” “ En jy, mensekind, vat vir jou 'n gebakte kleitablet, sit dit voor jou neer en krap 'n stad daarop uit – Jerusalem. Plaas haar dan onder beleg: Rig beleëringswerke teen haar op, hoop 'n beleëringswal teen haar op, stel leërafdelings teen haar op en plaas stormramme reg rondom haar. En jy, vat vir jou 'n bakplaat van yster en maak dit 'n ystermuur tussen jou en die stad. Kyk stip na haar. Sy sal onder beleg wees; jy sal haar beleër. Dit moet 'n teken wees vir die huis van Israel. “En jy, gaan lê op jou linkersy, en plaas so die sondeskuld van die huis van Israel op jou sy. Soveel dae as wat jy op jou sy lê, soveel dae sal jy hulle sondeskuld dra. En Ek, Ek het vir jou die aantal jare van hulle sondeskuld 'n getal dae gemaak – driehonderd-en-negentig dae lank moet jy die sondeskuld van die huis van Israel dra. As jy daarmee klaar is, moet jy 'n tweede keer gaan lê – op jou regtersy. Dan moet jy die sondeskuld van die huis van Juda dra, veertig dae lank. 'n Dag vir elke jaar is wat Ek dit vir jou maak. “Jy moet stip kyk na die beleëring van Jerusalem, en met 'n ontblote arm moet jy teen haar profeteer. Kyk, Ek sit toue om jou, sodat jy nie van die een sy op die ander kan draai totdat jy die tyd van jou beleëring voltooi het nie. “En jy, neem vir jou koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit saam in een houer en maak daarvan vir jou kos. So lank as wat jy op jou sy lê – driehonderd-en-negentig dae – moet jy dit eet. Die kos wat jy gaan eet, moet twintig sikkel per dag weeg. Op vaste tye moet jy daarvan eet. Ook water moet jy volgens maat drink – een sesde van 'n hin. Op vaste tye moet jy dit drink. Soos roosterkoeke van gars moet jy die kos eet. Op menslike uitwerpsel moet jy dit voor hulle oë bak.” Die Here het gesê: “So sal die Israeliete hulle kos •onrein moet eet onder die nasies waarheen Ek hulle gaan verdryf.” Toe sê ek: “Ag, my Heer, Here! Kyk, ek is self nooit verontreinig nie. Iets wat doodgegaan het of verskeur is, het ek van my jeug af tot nou toe nie geëet nie. Walglike vleis het nooit in my mond gekom nie. ” Hy het my geantwoord: “Goed, Ek laat jou dan toe om beesmis in plaas van menslike uitwerpsel te gebruik; jy kan jou kos daarop voorberei.” Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, kyk, Ek gaan die broodstok breek in Jerusalem. Hulle sal met kommer afgeweegde brood eet; en met ontsteltenis afgemete water drink, gevolglik sal hulle gebrek ly aan brood en water. Hulle sal mekaar geskok aankyk en wegteer weens hulle sondeskuld. “En jy, mensekind, neem vir jou 'n skerp swaard en gebruik dit soos 'n skeermes. Skeer daarmee jou hare en jou baard. Neem dan vir jou 'n weegskaal en verdeel die hare. Een derde moet jy binne die stad verbrand sodra die tyd van die beleg verby is, een derde moet jy neem en met die swaard fynkap al om die stad, en een derde moet jy in die wind uitstrooi. Met ontblote swaard sal Ek dit agtervolg. Jy moet 'n klein bietjie daarvan neem en dit in die soom van jou bokleed toevou; en daarvan moet jy nog neem en dit in die vuur gooi; jy moet dit verbrand. Daarvan sal daar 'n vuur uitgaan na die hele huis van Israel. ” So sê my Heer, die Here: “Dit is Jerusalem. Tussen die nasies het Ek haar geplaas, met ander lande reg rondom haar. Maar sy het in opstand gekom teen my bepalings, en teen my vaste voorskrifte, om sodoende meer goddeloos te wees as die nasies, as die lande wat rondom haar is. Ja, haar inwoners het my bepalings verwerp, en my vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie. “Daarom,” so sê my Heer, die Here, “omdat julle nog meer in verset was as die nasies rondom julle, my vaste voorskrifte nie gevolg het nie, my bepalings nie uitgevoer het nie, maar die gebruike van die nasies rondom julle nagevolg het, daarom,” so sê my Heer, die Here, “is dit Ek teen jou, Jerusalem – ja, Ek! Ek sal in jou midde, voor die oë van die nasies die vonnisse voltrek. Oor al jou afstootlike dade sal Ek in jou doen wat Ek nog nooit gedoen het nie, en so iets sal Ek nooit weer doen nie. Daarom dan, ouers sal binne jou kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. Ek sal teen jou die vonnisse voltrek. Ek sal almal wat in jou oor is, in al die windrigtings uitstrooi. Daarom, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “omdat jy my heiligdom verontreinig het met al jou verfoeilike afgode, met al jou afstootlike dade, gaan Ek ook 'n skeermes inlê. Ek sal nie 'n traan stort nie. Ek sal geen deernis hê nie. Een derde van jou inwoners sal van die epidemie sterf of in jou van honger omkom; een derde sal deur die swaard val rondom jou; een derde sal Ek in alle windrigtings uitstrooi, en met ontblote swaard sal Ek hulle agtervolg. Dan sal my toorn uitgewoed wees; Ek sal my woede teen hulle tot bedaring bring, en Ek sal berusting vind. Hulle sal besef dat Ek, die Here, hulle in my heilige jaloesie aangespreek het toe Ek my woede op hulle laat uitwoed het. “Ek sal jou 'n puinhoop maak, 'n bespotting van die nasies rondom jou, ten aanskoue van elke verbyganger. Jy sal 'n voorwerp van spot en hoon wees, 'n waarskuwing en verskrikking vir die nasies rondom jou, wanneer Ek in toorn en woede en met woedende bestraffings die vonnisse teen jou voltrek. Ek, die Here, het gepraat. Dit sal gebeur wanneer Ek die dodelike pyle van hongersnood wat verwoesting saai op julle afskiet – die pyle wat Ek afskiet om julle uit te delg. Ek sal die hongersnood teen julle nog erger maak; Ek sal julle broodstok breek. Ek sal teen julle hongersnood en ongediertes stuur, en hulle sal jou, Jerusalem, kinderloos maak. 'n Epidemie en bloedvergieting sal jou oorweldig, en 'n swaard sal Ek teen jou bring. Ek, die Here, het gepraat.” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, draai jou gesig na die berge van Israel en profeteer teen hulle. Jy moet sê, ‘Berge van Israel, hoor die woord van my Heer, die Here. So sê my Heer, die Here, vir die berge en heuwels, die stroombeddings en valleie: “Kyk, Ek gaan 'n swaard oor julle bring, en Ek gaan julle offerhoogtes vernietig. Julle altare sal verwoes word, julle wierookaltare sal stukkend gebreek word, en Ek sal julle gesneuweldes voor julle afgodsbeelde laat neerval. Ek sal die Israeliete se lyke voor hulle afgodsbeelde neergooi. “ ‘ “Ek sal julle beendere rondom julle altare strooi. Oral waar julle woon, sal die dorpe in puin lê, en die offerhoogtes verlate wees, sodat julle altare puin sal word en verlate lê, julle afgodsbeelde stukkend gebreek word en tot niet gaan, julle wierookaltare stukkend gekap word, en julle maaksels uitgewis word. Die gesneuweldes sal tussen julle lê; dan sal julle besef dat Ek die Here is. “ ‘ “ Ek sal sommige laat oorbly wanneer julle, tydens julle verstrooiing in ander lande tussen die nasies, aan die swaard ontkom. Dié van julle wat ontkom, sal aan My dink onder die nasies waarheen hulle in gevangenskap weggevoer is, en onthou dat Ek gebroke was deur hulle owerspelige harte wat van My afgewyk het, en hulle oë wat agter die afgodsbeelde aan gehoereer het. Hulle sal walg van hulleself oor die gruwels wat hulle aangerig het; hulle sal walg van al hulle afstootlike dade, en hulle sal besef dat Ek die Here is. Nie tevergeefs sê Ek dat Ek hulle hierdie onheil sal aandoen nie.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Klap jou hande en stamp jou voete, en sê, ‘Helaas!’ oor al die afstootlike, bose dade van die huis van Israel, want deur die swaard, hongersnood en pessiekte sal hulle val. Wie ver weg is – aan pessiekte sal hy sterf; wie naby is – deur die swaard sal hy val; wie oorbly, wie se lewe gespaar is – van honger sal hy omkom. Ek sal my woede op hulle laat uitwoed. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer hulle gesneuweldes tussen hulle afgodsbeelde lê, reg rondom hulle altare, op elke hoë heuwel, op al die bergtoppe, onder elke skaduryke boom, onder elke blaarryke terebintboom, die plekke waar hulle offers met 'n aangename geur vir al hulle afgodsbeelde aangebied het. Ek sal my hand teen hulle uitstrek en die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, van die woestyn af tot by Ribla, oral waar hulle woon. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “En jy, mensekind, so sê die Heer, die Here, vir die land Israel, ‘Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land. Die einde is nou hier vir jou. Ek het my toorn teen jou losgelaat; Ek vonnis jou volgens jou optrede; Ek vergeld jou vir al jou afstootlike dade. Ek sal nie 'n traan stort oor jou nie. Ek sal nie deernis hê nie, maar jou vir jou optrede vergeld. Jou afstootlike dade sal hulle in jou midde laat geld. Julle sal besef dat Ek die Here is. “ So sê die Heer, die Here, ‘Onheil, ongekende onheil, kyk, dit kom! 'n Einde het gekom; die einde het gekom! Hy het dit teen jou aangevuur; kyk, onheil is aan die kom! Ondergang kom na jou, bewoner van die land. Die tyd het gekom; naby is die dag! Daar is paniek, geen gejuig nie, op die berge. “ ‘Nou, binnekort, sal Ek oor jou, land van Israel, my woede uitstort; Ek sal my toorn op jou laat uitwoed. Ek sal jou vonnis volgens jou optrede, jou vergeld vir al jou afstootlike dade. Ek sal nie 'n traan stort nie, Ek sal nie deernis hê nie. Volgens jou optrede vergeld ek jou; jou afstootlike dade sal hulle in jou midde laat geld. Julle sal besef dat dit Ek, die Here, is wat toeslaan. “ ‘ Kyk, die dag! Kyk, dit het aangebreek! Die ondergang spruit uit; die tugroede blom; die verwaandheid dra vrug. Die geweld het opgestaan as 'n tugroede vir goddeloosheid. Niks van hulle bly oor nie – niks van hulle rykdom, niks van hulle prag en praal, niks voortrefliks onder hulle nie. Die tyd het aangebreek, die dag is naby. Die koper moet nie bly wees nie, en die verkoper moet nie treur nie, want 'n toorngloed kom oor alle rykdom van die land. Ja, die verkoper sal nie terugkeer na dit wat hy verkoop het nie, al leef hulle al twee nog; want die openbaring geld vir al die rykdom van die land; dit sal nie herroep word nie. “ ‘Weens sy sondeskuld sal niemand die lewe kan behou nie. Hulle blaas op die •ramshoring, maak alles gereed, maar niemand gaan oorlog toe nie; want my toorngloed is gerig teen Jerusalem se hele menigte. Die swaard is daar buite, 'n epidemie en hongersnood daar binne. Wie in die veld is, sal deur die swaard sterf; wie in die stad is – hongersnood en die epidemie verteer hom. Dié van hulle wat ontkom, sal in die berge wees soos duiwe van die valleie – hulle almal kla, elkeen oor sy sondeskuld. Alle hande word slap, en alle knieë word water. Hulle sal rouklere ombind, en ontsetting sal hulle bedek. Elke gesig is vol skaamte, en al hulle koppe kaalgeskeer. Hulle silwer sal hulle in die strate weggooi, hulle goud sal as •onrein afval beskou word. Hulle silwer en goud – dit kan hulle nie red op die dag van die Here se gramskap nie. Hulle eetlus sal hulle daarmee nie kan stil nie, hulle ingewande nie kan vul nie. Want dit was die struikelblok wat hulle sondeskuld meegebring het; met die pragtige juwele van goud en silwer het hulle 'n voorwerp van trots opgerig; hulle afstootlike en verfoeilike afgodsbeelde het hulle daarmee gemaak. Daarom gee Ek dít aan hulle as •onrein afval. Ek gee dit in die hand van vreemdes as buit, aan die goddeloses van die aarde as oorlogsbuit, en hulle sal dit ontheilig. Ek sal my gesig van hulle wegdraai, en hulle sal my kleinood ontheilig. Geweldenaars sal daar ingaan, dit ontheilig. Maak 'n ketting! Want die land is vol vonnisse oor moord, die stad is vol geweld. Ek sal die slegste nasies bring, en hulle sal die inwoners se huise in besit neem. Ek sal 'n einde maak aan die trots van sterkes, en hulle heiligdomme sal ontheilig word. “ ‘Angs is op pad; hulle sal vrede soek, maar daar sal nie wees nie. Ramp op ramp is op pad; daar is gerug ná gerug. Hulle soek 'n openbaring by die profeet; onderrig deur die priester ontbreek, ook raad deur die oudstes. Die koning sal rou, die leier sal verslae wees; die volk van die land se hande is deur angs verlam. Volgens hulle optrede sal Ek met hulle handel. Volgens hulle regspraak sal Ek oor hulle regspreek. Hulle sal besef dat Ek die Here is.’ ” In die sesde jaar, op die vyfde dag van die sesde maand, het ek in my huis gesit, met die oudstes van Juda wat voor my sit. Toe het die hand van my Heer, die Here, daar oor my gekom. Toe ek kyk, is daar 'n gestalte wat lyk of dit van vuur is! Vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe was daar vuur, en vanaf sy heupe boontoe het dit gelyk soos 'n glans, soos die skittering van witgoud. Hy steek toe iets met die vorm van 'n hand uit, en neem my aan die hare van my kop. 'n Gees het my opgelig tussen aarde en hemel, en my na Jerusalem geneem in visioene van God, na die ingang van die binneste poort wat noord kyk, daar waar die afgodsbeeld staan wat heilige verontwaardiging wek. En kyk, daar was die heerlikheid van die God van Israel – net soos die verskyning wat ek in die laagte gesien het! Hy sê toe vir my: “Mensekind, kyk na die noorde toe.” Ek het na die noorde gekyk, en daar, aan die noordekant van die poort na die altaar, by die ingang, is hierdie beeld wat verontwaardiging wek! Hy sê toe vir my: “Mensekind, sien jy wat doen hulle – die ontsettend afstootlike dinge wat die huis van Israel hier doen, sodat Ek op 'n afstand bly van my heiligdom af? Maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.” Hy neem my toe na die ingang van die voorhof, en ek sien toe, kyk, daar is 'n gat in die muur! Hy sê vir my: “Mensekind, breek deur die muur!” Ek het deur die muur gebreek, en kyk, daar is toe 'n ingang. En Hy sê vir my: “Gaan in en kyk na die afstootlike, bose dinge wat hulle hier doen.” Ek het ingegaan, en toe ek kyk, is daar allerlei weersinwekkende afbeeldings van kruipende en ander diere, ook al die afgodsbeelde van die huis van Israel, uitgekerf op die muur reg rondom! Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg. Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat.’ ” Hy sê toe vir my: “Jy sal nog erger afstootlike dade sien wat hulle doen.” Hy neem my toe na die ingang van die poort aan die noordekant van die huis van die Here; en daar sit vroue wat treur oor Tammus! Hy sê toe vir my: “Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog erger afstootlike dade sien as dit.” Hy neem my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here; en daar, by die ingang na die Here se •tempel, tussen die portaal en die altaar, is ongeveer vyf-en-twintig manne met hulle rûe na die Here se tempel gekeer en hulle gesigte na die ooste! Hulle het na die ooste gebuig in aanbidding voor die son. Hy sê toe vir my: “Sien jy dit, mensekind? Is die afstootlike dade wat hulle hier aanvang dan te gering vir die huis van Juda, dat hulle ook nog die land vul met geweld en My telkens weer uittart? Kyk, hulle steek 'n wingerdrank uit na my neus. Op my beurt gaan Ek in woede optree. Ek sal nie 'n traan stort nie, Ek sal nie deernis hê nie. Al roep hulle baie hard in my ore, Ek sal nie na hulle luister nie.” Hy het hard in my ore geroep: “Kom nader, julle wat die stad gaan straf, elkeen met sy wapen van verwoesting in sy hand.” Toe kom daar meteens ses manne uit die rigting van die boonste poort wat noord front, elkeen met sy wapen van vernietiging in sy hand. Tussen hulle was daar 'n man geklee in linne, met 'n skrywersak aan sy heup. Hulle kom toe en gaan staan langs die bronsaltaar. Die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gerub waarop dit was, en na die drumpel van die •tempel gegaan. Die Here roep toe na die man wat in linne geklee was, met die skrywersak aan sy heup, en sê vir hom: “Deurkruis die stad, deurkruis Jerusalem, en maak 'n kruisie op die voorkoppe van die mense wat sug en kla oor al die afskuwelikhede wat daarin gedoen word.” Vir die ander mans het Hy, waar ek dit hoor, gesê: “Deurkruis die stad agter hom aan en slaan dood. Julle moet nie 'n traan stort of deernis hê nie. Ou mans, jong mans, maagde, kleuters en vroue moet julle om die lewe bring en sodoende uitroei. Maar aan enigeen op wie daar 'n kruisie is, mag julle nie raak nie. By my heiligdom moet julle begin.” Hulle het begin by die ou mans wat voor die tempel was. Hy sê toe vir hulle: “Verontreinig die •tempel, maak die voorhowe vol gesneuweldes – gaan nou!” Hulle het uitgegaan en in die stad mense doodgeslaan. Terwyl hulle so besig was om dood te slaan, het ek alleen oorgebly. Ek het neergeval met my gesig teen die grond, om hulp geroep en gesê: “Ag, Here, my Heer, gaan U almal wat oorgebly het van Israel uitroei terwyl U so u woede oor Jerusalem uitstort?” Toe sê Hy vir my: “Die sondeskuld van die huis van Israel en Juda is uitermate groot. Die land is gevul met bloedskuld, die stad is vol van die verdraaiing van die wet. Want hulle sê, ‘Die Here het die land verlaat; die Here sien dit nie.’ Ek sal daarom ook nie 'n traan stort nie; Ek sal nie deernis hê nie. Hulle optrede sal Ek op hulle koppe laat neerkom.” Juis toe doen die man geklee in linne, met die skrywersak aan sy heup, verslag: “Ek het presies gedoen wat U my beveel het.” Toe ek kyk, is daar bo die koepel wat oor die gerubs se koppe was, iets soos •lasuursteen in die vorm van 'n troon! Dit was sigbaar bo die gerubs. Toe praat die Here met die man geklee in linne. Hy het gesê: “Gaan tussen die wiele in, onder die gerubs, en maak jou twee hande daar tussen die gerubs vol gloeiende kole vuur, en strooi dit oor die stad uit. ” Hy het voor my oë daar ingegaan. Die gerubs het aan die regterkant in die •tempel gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul. Die heerlikheid van die Here het van bo die gerub opgestyg en oor die drumpel van die tempel gegaan. Die tempel was gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die helder gloed van die heerlikheid van die Here. Die geluid van die gerubs se vlerke kon tot in die buitenste voorhof gehoor word. Dit was soos die stem van God, die Almagtige, wanneer Hy praat. Toe die Here die man geklee in linne die opdrag gee, “Neem vuur daar tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy ingegaan en langs 'n wiel gaan staan. 'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uitgesteek na die vuur wat tussen die gerubs was, dit opgetel en in die twee bak hande van die een geklee in linne geplaas. Hy het dit geneem en uitgegaan. Dit het gelyk of die gerubs 'n vorm van mensehande onder hulle vlerke het. Toe ek kyk, is daar vier wiele langs die gerubs, 'n wiel langs elke gerub! Die wiele het gelyk of hulle soos •chrisoliet-edelstene skitter. Al vier het presies dieselfde vorm gehad, asof daar 'n wiel binne-in 'n wiel was. Wanneer hulle beweeg het, kon hulle na enige van die vier kante beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg. Want die plek waarheen die voorste wiel gewys het, daarheen het die ander hom gevolg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg. Hulle hele liggaam, hulle rûe, hulle hande en vlerke, asook die wiele – al vier se wiele – was rondom vol oë. Wat die wiele betref, hulle is, soos ek dit gehoor het, die wielstelsel genoem. Elke gerub het vier gesigte gehad: Die eerste gesig was dié van 'n gerub, die tweede gesig dié van 'n mens, die derde die gesig van 'n leeu, en die vierde die gesig van 'n arend. Die gerubs het opgestyg. Dit was die wesens wat ek reeds by die Kebarrivier gesien het. Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die gerubs hulle vlerke gelig het om van die grond af op te styg, het ook hulle, die wiele langs hulle, nie weggedraai nie. Wanneer die gerubs stilstaan, het hulle stilgestaan, en wanneer die gerubs opstyg, het hulle saam opgestyg; want die gees van die wesens was in hulle. Die heerlikheid van die Here het uitgekom van bo die drumpel van die tempel en bo die gerubs tot stilstand gekom. Die gerubs het hulle vlerke gelig en voor my oë van die grond af opgestyg, met die wiele steeds langs hulle terwyl hulle opstyg. Hulle het tot stilstand gekom by die ingang van die poort aan die oostekant van die huis van die Here, en die heerlikheid van die God van Israel was bo hulle. Dit was die wesens wat ek by die Kebarrivier gesien het onder die God van Israel. Ek het besef dat dit gerubs is. Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en onder hulle vlerke was iets in die vorm van mensehande. En wat die vorm van hulle gesigte betref: Dit was die gesigte wat ek langs die Kebarrivier gesien het – dieselfde voorkoms, ja, dit was hulle. Elkeen het reguit vorentoe beweeg. 'n Gees het my opgelig en my na die poort aan die oostekant van die huis van die Here, geneem, die poort wat oos front. In die ingang van die poort was daar vyf-en-twintig manne! Tussen hulle het ek die volksleiers Jaäsanja, seun van Assur, en Pelatja, seun van Benaja, gesien. Die Here sê toe vir my: “Mensekind, dit is die manne wat onreg beplan en slegte advies gee in hierdie stad. Dit is hulle wat dink, dit is nie nodig om binnekort huise te herbou nie; die stad is 'n pot en ons is die vleis. Daarom, profeteer teen hulle, profeteer, mensekind!” Toe val die Gees van die Here op my en die Here sê vir my: “Jy moet sê, ‘So sê die Here: “Dit is wat julle dink, huis van Israel; Ek weet wat in julle gedagtes opkom. Julle het baie mense in hierdie stad laat sneuwel; julle het sy strate vol gesneuweldes gemaak.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Julle gesneuweldes wat julle in die stad neergelê het, hulle is die vleis, en die stad is die pot. Maar julle gaan Ek uit die stad neem. 'n Swaard, dit vrees julle; 'n swaard sal Ek dan oor julle bring,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Ek sal julle uit die stad laat uitgaan en julle oorgee in die hand van vreemdes. Ek sal vonnisse oor julle voltrek. Deur die swaard sal julle val op die grondgebied van Israel. Ek sal julle oordeel, en julle sal besef dat Ek die Here is. Hierdie stad sal nie vir julle 'n pot wees nie, en julle sal nie die vleis daarin wees nie. Op die grondgebied van Israel sal Ek julle oordeel. Julle sal besef dat Ek die Here is, wie se vaste voorskrifte julle nie gevolg het nie, en wie se beslissings julle nie uitgevoer het nie. Julle het eerder die beslissings van die nasies rondom julle uitgevoer.” ’ ” Terwyl ek profeteer, het Pelatja, seun van Benaja, gesterf. Ek het neergeval met my gesig teen die grond en met 'n harde stem uitgeroep: “Ag, Here, my Heer! Volslae vernietiging, dit is wat U doen aan dié wat oorgebly het van Israel! ” Die woord van die Here kom toe tot my: “Mensekind, dit gaan oor jou volksgenote, jou broers, jou mense met die reg om grond terug te koop, ja, die hele huis van Israel, hulle almal vir wie die inwoners van Jerusalem nou sê, ‘Hulle is ver van die Here af. Aan ons is hierdie land gegee as eiendom.’ Sê daarom, ‘So sê my Heer, die Here: “Alhoewel Ek hulle ver verwyder het tussen die nasies, en hulle verstrooi het in ander lande, het Ek vir 'n kort rukkie vir hulle 'n heiligdom geword in die lande waarheen hulle gegaan het.” ’ Sê daarom vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ek sal julle bymekaarmaak tussen die volke; Ek sal julle byeenbring uit die lande waarin julle verstrooi is. Ek sal vir julle die land Israel gee. Hulle sal daarheen gaan, en hulle sal al die verfoeilike afgode en al die afstootlike dade in die land daaruit verwyder. Ek sal vir hulle 'n onverdeelde hart gee. 'n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle 'n hart van vlees gee, sodat hulle my vaste voorskrifte sal volg en my beslissings sal nakom en uitvoer. Hulle sal vir My 'n volk wees en Ek sal vir hulle 'n God wees. Wat harte betref: Hulle wie se harte hulle verfoeilike afgode en hulle afstootlike dade bly volg – hulle optrede sal Ek op hulle eie koppe laat neerkom,” is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Daarop het die gerubs hulle vlerke gelig, en die wiele was langs hulle. Die heerlikheid van die God van Israel was heel bo, oor hulle. Die heerlikheid van die Here het uit die stad uit opgegaan en tot stilstand gekom bo die berg wat oos van die stad is. Toe het 'n gees my opgelig en, in 'n visioen gestuur deur die Gees van God, my na Galdeë geneem, na die ballinge. Die visioen wat ek gesien het, het toe van my af opgegaan, en ek het aan die ballinge al die woorde van die Here meegedeel wat Hy my in die visioen laat ervaar het. Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, jy woon midde-in die rebelse huis – hulle wat oë het om te sien, maar hulle sien nie, hulle wat ore het om te hoor, maar hulle hoor nie; want hulle is 'n rebelse huis. Jy, mensekind, kry jou bagasie gereed vir 'n ballingskap, en gaan oordag, voor hulle oë, in ballingskap. Jy moet voor hulle oë van jou plek na 'n ander plek in ballingskap gaan. Miskien sien hulle in dat hulle die rebelse huis is. Jy moet jou bagasie, soos die bagasie vir 'n ballingskap, in die dag voor hulle oë uitdra, maar jy self moet, terwyl hulle toekyk, teen die aand uitgaan soos mense maak wat in ballingskap gaan. Voor hulle oë moet jy deur die muur breek en jou goed daardeur uitdra. Voor hulle oë moet jy dit op jou skouer tel. Jy moet in die skemerdonker uitgaan en jou gesig moet jy bedek, sodat jy nie die land sien nie; want as 'n teken gee Ek jou vir die huis van Israel. ” Ek het toe gemaak presies soos ek beveel is. My bagasie het ek in die dag uitgedra asof dit bagasie vir 'n ballingskap was, en teen die aand het ek eiehandig deur die muur gebreek. In die skemerdonker het ek met die bagasie vertrek. Op my skouer het ek dit gedra, voor hulle oë. Die woord van die Here het die volgende oggend tot my gekom: “ Mensekind, het die huis van Israel, die rebelse huis, nie vir jou gevra wat jy besig is om te doen nie? Jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Hierdie uitspraak is van toepassing op die leiers in Jerusalem, en die hele huis van Israel in wie se midde hulle is.” ’ “Sê, ‘Ek is vir julle 'n teken. Presies wat ek gedoen het, sal aan hulle gedoen word. In ballingskap, in gevangenskap, sal hulle gaan.’ “Die leier in hulle midde sal bagasie op sy skouer tel in die skemerdonker en vertrek. In die muur sal hulle 'n gat maak om hom daardeur te laat uitgaan. Sy gesig sal hy bedek, sodat geen oog hom sien nie, en hy ook nie die land sien nie. Ek sal my vangnet oor hom uitsprei; hy sal in my jagnet gevang word, en Ek sal hom na Babel, na die land van die Galdeërs, neem. Maar daardie land sal hy nie sien nie, en daar sal hy sterf. “ Almal om hom, sy helpers en al sy troepe, sal Ek in al die windrigtings uitstrooi. Met ontblote swaard sal Ek hulle agtervolg. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek hulle versprei onder die nasies, hulle verstrooi in ander lande. Maar Ek sal 'n klein aantal van hulle laat oorbly ná die swaard, die hongersnood en pessiekte, sodat hulle onder die nasies waarheen hulle gaan, kan vertel van al hulle afstootlike dade. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, jou voedsel moet jy met bewing eet, en jou water met siddering en kommer drink. Dan moet jy vir die volk van die land sê, ‘So sê my Heer, die Here oor die inwoners van Jerusalem in die land Israel: “Hulle voedsel sal hulle met kommer eet, en hulle water sal hulle bewend drink, omdat Jerusalem se land en alles daarop verlate sal wees vanweë die geweld van al die inwoners daarvan. Die bewoonde dorpe sal in puin lê, en die land sal 'n woesteny wees. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, wat is hierdie spreuk van julle oor die land Israel, ‘Die dae gaan verby, en van elke visioen kom daar niks’? “Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ek maak 'n einde aan hierdie spreuk. Hulle sal dit nie meer in Israel as spreuk gebruik nie.” Maar kondig vir hulle aan, “Naby is die dae, en ook die vervulling van elke visioen; want daar sal nie meer bedrieglike visioene of vals godsprake in die huis van Israel wees nie. As Ek, die Here, iets aankondig, sal dit wat Ek aankondig, gebeur. Dit sal nie meer uitgestel word nie, want nog in júlle tyd, rebelse huis, sal Ek iets aankondig en dit uitvoer.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, kyk, die huis van Israel sê, ‘Die visioen wat hy sien, is vir baie dae later, en hy is besig om oor verre tye te profeteer.’ Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Nie een van my woorde sal meer uitgestel word nie. Wat ek aankondig, sal gebeur.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat besig is om te profeteer. Sê vir die profete wat uit hulle eie harte praat, ‘Hoor die woord van die Here! So sê my Heer, die Here: “Wee die dwase profete wat hulle eie gees volg, maar niks gesien het nie. Soos jakkalse tussen puinhope het jou profete geword, Israel. Hulle het nie opgeklim na die bresse en 'n klipmuur gepak ter verdediging van die huis van Israel, sodat hy staande kan bly in die stryd op die dag van die Here nie. Hulle visioene is vals, 'n leuenagtige voorspelling, hulle wat telkens sê, ‘Dit is die uitspraak van die Here. ’ Die Here het hulle egter nie gestuur nie. En dan wag hulle nog dat die woord vervul sal word! Het julle nie valse visioene gesien en 'n leuenagtige godspraak gelewer toe julle gesê het, ‘Dit is die uitspraak van die Here, ’ terwyl Ek nie iets aangekondig het nie?” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat julle valse uitsprake maak en bedrieglike visioene sien, daarom is dit nou Ek teen julle.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “My hand sal gekeer wees teen die profete wat valse visioene sien en leuenagtige voorspellings maak. In die binnekring van my volk sal hulle nie wees nie, in die boek van die huis van Israel sal hulle nie opgeskryf word nie, en op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Julle sal besef dat Ek, die Heer, die Here, is, omdat, ja, omdat hulle my volk mislei het deur te sê, ‘Vrede!’ toe daar geen vrede was nie. Wanneer iemand 'n klipmuur pak, kyk, dan pleister hulle dit met kalk. Sê vir hulle wat met kalk pleister, ‘Die muur gaan val!’ 'n Geweldige stortreën kom, Ek sal groot haelstene gee, hulle sal val. 'n Stormwind sal losbreek – en kyk, die muur het geval! Daar sal sekerlik vir julle gevra word, ‘Waar is die klei waarmee julle gepleister het?’ ” Daarom, so sê my Heer, die Here, “Ek laat 'n stormwind losbreek in my woede; in my toorn sal stortreën val, ook groot haelstene met vernietigende venyn. Ek sal die muur wat julle met kalk gepleister het, afbreek en dit op die grond neergooi, sodat sy fondament ontbloot word. Dit sal val en julle sal daarin omkom. Julle sal besef dat Ek die Here is. Ek sal my woede laat uitwoed op die muur en op hulle wat dit met kalk pleister. Dan sal Ek vir julle sê, ‘Die muur is nie meer daar nie, en ook nie hulle wat dit pleister nie – daardie profete van Israel wat vir Jerusalem profeteer en vir haar visioene van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie.’ ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “En jy, mensekind, rig jou tot die dogters van jou volk wat uit hulle eie harte profeteer. Profeteer teen hulle en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Ellende wag vir hulle wat towerbande maak vir almal se polse, en hoofbedekkings maak vir koppe van alle groottes, om so op lewens jag te maak. Sal julle op die lewens van my volk jag maak, maar julle eie lewens behou? Julle het my heiligheid aangetas by my volk, vir 'n paar hande vol gars en 'n paar stukkies brood, deur lewens te vernietig van mense wat nie moes sterf nie, en lewens te behou van mense wat nie moes bly leef nie, toe julle vir my volk wat na leuens luister, gelieg het.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek is teen julle towerbande waarmee julle daar in Jerusalem op lewens jag maak asof hulle voëls is. Ek sal dit van julle voorarms afskeur. Ek sal die lewens wat julle vang asof hulle voëls is, vrylaat. Ek sal julle hoofbedekkings afskeur en my volk red uit julle hand. Hulle sal nie meer as 'n vangs in julle hand wees nie. Julle sal besef dat Ek die Here is. Omdat julle deur leuens die harte van regverdiges laat ineenkrimp, terwyl Ek hulle nie pyn wil aandoen nie, en omdat julle die hande van goddeloses sterk, sodat hulle hulle nie bekeer van hulle bose optrede en gevolglik bly leef nie – daarom: Valse visioene sal julle nie sien nie, en voorspellings sal julle nie meer maak nie. Ek sal my volk uit julle hand red. Julle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ” Manne uit die oudstes van Israel het by my aangekom en voor my gaan sit. Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, hierdie manne het aan afgodsbeelde 'n plek gegee in hulle harte. Hulle sien nie af van die struikelblok wat hulle sondeskuld meebring nie. Moet Ek My enigsins deur hulle laat raadpleeg? Daarom, spreek hulle aan, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Enige persoon uit die huis van Israel wat aan sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom – Ek, die Here, voel Ek moet hom antwoord in ooreenstemming met die omvang van sy afgodery, sodat dit die huis van Israel aan die hart sal gryp, hulle wat almal van My vervreemd geraak het oor hulle afgodsbeelde.” ’ “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Bekeer julle! Julle moet wegdraai van julle afgodsbeelde, en van al julle afstootlike dade moet julle afsien. Wanneer enigiemand uit die huis van Israel of uit die •vreemdelinge wat tydelik in Israel woon, van My vervreemd raak en sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart, en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom om by My vir hom antwoorde te soek, sal Ek, die Here, voel Ek moet hom antwoord. Ek sal teen daardie man draai en van hom 'n voorbeeld maak, 'n aanleiding tot spotwoorde; Ek sal hom uit die midde van my volk verwyder. Julle sal besef dat Ek die Here is. “ ‘ “ En wat die profeet betref – as hy verlei word en 'n uitspraak maak, is dit Ek, die Here, wat daardie profeet verlei het. Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. Hulle sal hulle sondeskuld moet dra. Die straf vir die sondeskuld van die profeet sal dieselfde wees as die straf van die een wat raadpleeg, sodat die huis van Israel nie weer van My sal afdwaal nie, en hulleself nie weer verontreinig met al hulle oortredings nie. Dan sal hulle vir My 'n volk wees en Ek sal vir hulle 'n God wees. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, as 'n land teen My sou sondig deur troubreuk te pleeg, en Ek dan my hand daarteen uitstrek, sy broodstok breek, hongersnood daarin loslaat, en mens en dier daarin uitroei, selfs as hierdie drie manne, Noag, Danel en Job in die land was, sou hulle deur hulle geregtigheid net hulle eie lewens red. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Sê nou Ek laat roofdiere 'n land oorneem en hulle maak dit kinderloos, sodat dit verlate lê en niemand daardeur reis nie, weens die roofdiere, en daardie drie manne is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nóg die seuns, nóg die dogters red. Hulle alleen sal gered word, en die land sal verlate lê. “ Of as Ek 'n swaard oor daardie land bring en sê, ‘'n Swaard moet die land deurkruis,’ en Ek mens en dier daarin uitroei, en hierdie drie manne is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nie seuns of dogters red nie; nee, hulle alleen sal gered word. “Of as Ek pessiekte in daardie land stuur, of Ek stort my woede oor die land uit deur bloedvergieting om mens en dier daar uit te roei, en Noag, Danel en Job is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nóg 'n seun, nóg 'n dogter red. Selfs hulle sal deur hulle geregtigheid net hulle eie lewens red.” Ja, so sê my Heer, die Here: “Hoeveel te meer as Ek my vier verskriklike oordele – die swaard, hongersnood, roofdiere en 'n epidemie – oor Jerusalem losgelaat het om mens en dier daar uit te roei! Maar kyk, daar sal oorlewendes in haar oorbly wat daar uitgebring word, seuns en dogters. Ja, hulle sal na julle uitkom, en julle sal hulle optrede en dade sien. Dan sal julle berusting vind oor die onheil wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek oor haar laat kom het. Hulle sal julle laat berus wanneer julle hulle optrede en dade sien, en julle sal besef dat Ek nie sonder rede alles wat Ek in haar gedoen het, gedoen het nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, wat gebeur met die hout van die wingerdstok anders as wat met al die ander hout gebeur, met die takke wat aan die bome van die bos was? Word van die wingerdstok hout geneem om iets bruikbaars daarvan te maak? Of neem mense 'n stuk daarvan as 'n pen om enigiets aan op te hang? Kyk, dit is vir die vuur bestem, as brandhout. As die vuur sy twee punte verteer het en sy middelstuk is verkool, sal dit deug vir iets bruikbaars? Kyk, toe dit ongeskonde was, kon daarvan nie iets bruikbaars gemaak word nie. Veel minder kan daar, nadat 'n vuur dit verteer het en dit verkool is, iets bruikbaars van gemaak word.” “Daarom, so sê my Heer, die Here, ‘Soos die hout van die wingerdstok hoort by die hout van die bos wat Ek vir die vuur as brandhout gegee het, net so het Ek die inwoners van Jerusalem oorgegee. Ek draai teen hulle. Uit die vuur het hulle gekom, maar die vuur sal hulle verteer. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek teen hulle draai. Ek sal die land 'n woesteny maak, omdat hulle troubreuk gepleeg het.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, maak aan Jerusalem haar afstootlike dade bekend en sê, ‘So sê my Heer, die Here, vir Jerusalem: “Jou oorspronge, jou afkoms lê in die land van die Kanaäniete. Jou vader was 'n Amoriet, jou moeder 'n Hetiet. Wat jou geboorte betref: Die dag toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie; met water is jy nie gewas om jou skoon te maak nie; met sout is jy nie ingevryf nie, en jy is glad nie toegedraai nie. Niemand het 'n traan oor jou gestort en uit deernis met jou enigiets hiervan vir jou gedoen nie. Jy is met minagting vir jou lewe weggegooi in die veld die dag toe jy gebore is. “ ‘ “Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef!’ Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef en groei!’ Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend. “ ‘ “Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou 'n eed afgelê, My in 'n verbond met jou begewe, ” is die uitspraak van my Heer, die Here: “en jy het Myne geword. “ ‘ “Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, 'n halssnoer om jou nek. Ek het 'n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en 'n sierlike kroon op jou kop. “ ‘ “Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as 'n koningin. Jy het onder die nasies roem verwerf met jou skoonheid; want dit was volmaak, danksy die versierings wat Ek aan jou gehang het.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “ Maar toe het jy op jou skoonheid staatgemaak en het jy gehoereer, omdat jy beroemd was. Jy het jou hoerery uitgestort op elke verbyganger; aan hom het jou skoonheid behoort. Jy het van jou klere gevat, vir jou veelkleurige kussings gemaak en daarop gehoereer. Dit was nie daarvoor bedoel nie, en dit moes nie gebeur nie. Jy het van jou versiersels gevat, van die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het. Jy het vir jou afgodsbeelde van mans gemaak en so jou hoerery voortgesit. Jy het jou veelkleurig geweefde klere gevat, die beelde daarmee bedek, en my olie en reukwerk voor hulle neergesit. Die voedsel wat Ek vir jou gegee het – ja, gesifte meel, olyfolie en heuning het Ek jou laat eet – jy het dit voor hulle neergesit as 'n geurige offer. Dit is wat gebeur het!” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “ Toe het jy jou seuns en dogters gevat, dié wat jy vir My in die wêreld gebring het, en jy het hulle aan die beelde geoffer as voedsel. Was jou owerspel nie genoeg nie, dat jy my kinders moes slag, hulle moes oorlewer deur hulle aan die beelde toe te wy? By al jou afstootlike dade en owerspel het jy nie jou kindertyd onthou toe jy ontbloot en nakend, spartelend in jou bloed was nie. “ ‘ “En toe, ná al jou boosheid – wee jou, ja, wee jou!” is die uitspraak van my Heer, die Here – “ het jy vir jou plekke vir hoerery gebou. Jy het vir jou offerhoogtes ingerig op elke oop plek. By elke kruispad het jy jou offerhoogtes gebou, en sodoende jou skoonheid iets afstootliks gemaak. Jy het jou bene oopgesprei vir elke verbyganger en jou dade van owerspel vermeerder. Jy het met die Egiptenare gehoereer, jou goedbedeelde bure. Jy het jou owerspel vermeerder en My uitgetart. Kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek; Ek het jou onderhoud ingekort. Ek het jou oorgegee aan die willekeur van hulle wat jou haat, aan die Filistynse vroue wat hulle skaam vir jou skandelike gedrag. Jy het gehoereer met die Assiriërs, sonder dat jy bevredig is. Ja, jy het met hulle gehoereer, en nog erger, jy is nie bevredig nie. Jy het jou owerspel vermeerder in die land van die handelaars, die Galdeërs, maar selfs daardeur is jy nie bevredig nie. “ ‘ “Hoe vurig is jou hartstog,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “wanneer jy al hierdie dinge doen – die werk van 'n brutale hoervrou! “ ‘ “Met die bou van jou plekke vir hoerery by elke kruispad, met jou offerhoogtes wat jy ingerig het op elke oop plek, was jy nie soos 'n gewone prostituut nie – jy het fooie versmaai! Jou egbreekster! In plaas van haar man, ontvang sy vreemdes! Aan alle prostitute word vergoeding betaal, maar jy het jou prys aan al jou minnaars betaal; jy het hulle omgekoop om na jou te kom, van oraloor, vir jou dade van owerspel. By jou is dit andersom as by ander vroue wanneer dit by jou dade van owerspel kom: Jy word nie genader vir omgang nie, en terwyl jy 'n fooi betaal, word 'n fooi nie aan jou betaal nie. Met jou is dit net andersom.” “ ‘Daarom, jou hoer, hoor die woord van die Here! So sê my Heer, die Here: “Omdat jou koper so vermors is, jou naaktheid ontbloot is deur jou dade van owerspel by jou minnaars – ja, oor al jou afstootlike afgodsbeelde en oor die bloed van jou kinders wat jy aan hulle oorgelewer het – daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. Hulle sal 'n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand en oordele aan jou voltrek ten aanskoue van baie vroue. Ek sal 'n einde maak aan jou hoerery; ook fooie sal jy nie meer kan betaal nie. So sal Ek my toorn teen jou tot bedaring bring, en dan sal my heilige jaloesie van jou afgewend word. Ek sal kalm word en My nie meer vererg nie. “ ‘ “Omdat jy nie gedink het aan jou kindertyd nie en My ontstel het met al hierdie dinge, tree Ek op my beurt op: Kyk, op jou kop laat Ek jou dade neerkom,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Het jy dan nie die skandelike dade gepleeg bo en behalwe al jou afstootlike optrede nie? “ ‘ “Kyk, elkeen wat oor jou 'n spreekwoord wil maak, sal sê, ‘Soos die moeder is, so is die dogter.’ Jy is jou moeder se dogter, sy wat 'n afkeer gehad het van haar man en haar kinders. Jy is jou susters se suster, hulle wat 'n afkeer gehad het van hulle mans en kinders. Julle moeder was 'n Hetiet en julle vader 'n Amoriet. Jou ouer suster is Samaria, dit is sy en haar dogters wat noord van jou woon. Jou suster jonger as jy, sy wat suid van jou woon, is Sodom met haar dogters. Maar jy het nie net in hulle spore gevolg en hulle afstootlike dade nagedoen nie – binne 'n kort rukkie het jy in alles wat jy doen, jou meer wangedra as hulle. So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “jou suster Sodom, sy en haar dogters, het beslis nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. Kyk, dít was die sondeskuld van jou suster Sodom – hoogmoed, 'n oormaat kos en sorgelose rustigheid was haar en haar dogters se deel, maar hulle het die hand van magteloses en behoeftiges nie versterk nie. Hulle was hovaardig en het afstootlike dinge in my teenwoordigheid gedoen. Ek het hulle verwyder toe Ek dit sien. Samaria, sy het nie die helfte van jou sondes gepleeg nie. Jy het baie meer afstootlike dinge gedoen as hulle. Jy het jou suster regverdig laat lyk met al die afstootlike dade wat jy aangerig het. Dra jy dan ook jou vernedering, want jy het met jou sondes aan jou susters regverdiging verskaf vir hulle dade. Omdat jy meer afstootlik opgetree het as hulle, lyk hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook en dra jou vernedering, omdat jy jou susters regverdig laat lyk het. “ ‘ “Ek gaan egter hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaria en haar dogters. Dan sal Ek jou lot daar tussen hulle verander. Die doel daarvan is dat jy eers jou vernedering moet dra en jou moet skaam vir alles wat jy gedoen het waardeur jy hulle gerusgestel het. Wat jou susters betref, Sodom en haar dogters sal terugkeer na wat hulle vroeër was, en Samaria en haar dogters sal terugkeer na wat hulle vroeër was; en dan sal jy en jou dogters terugkeer na wat julle vroeër was. Jou suster Sodom was in die tyd van jou hoogmoed nie eens 'n berig uit jou mond werd nie, in die tyd voordat jou boosheid onthul is. Tans is dit die tyd vir bespotting deur die vroue van Aram en almal daar rondom, ook die Filistynse vroue, hulle wat jou minag van alle kante af. Jou skandelike gedrag, jou afstootlike dade, dié dra jy nou self.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here. “ ‘ Ja, so sê my Heer, die Here: “Ek maak met jou soos jy gemaak het: Jy het die vervloeking geminag, om so die verbond te verbreek. “ ‘ “ Maar Ek self onthou steeds my verbond met jou in jou jong dae, en Ek sal 'n ewige verbond met jou oprig. Dan sal jy jou dade onthou, en jy sal jou skaam wanneer Ek jou susters neem, die een wat ouer is as jy en die een wat jonger is as jy, en wanneer Ek hulle aan jou gee as jou dogters, al is dit nie deel van die verbond met jou nie. Ek self sal my verbond met jou vestig, en jy sal besef dat Ek die Here is, sodat jy kan onthou en skaam wees. Jy sal nie weer jou mond oopmaak nie vanweë jou skaamte, wanneer Ek aan jou versoening skenk vir alles wat jy gedoen het. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, vra 'n raaisel, en vertel 'n gelykenis vir die huis van Israel. Sê, ‘So sê my Heer, die Here: “'n Groot arend met groot vlerke, lang penvere, en vol veelkleurige vere, het na die Libanon gekom. Hy het die top van 'n seder geneem, die boonste van sy lote afgepluk. Hy het dit na 'n land van handelaars geneem; in 'n stad van kooplui het hy dit neergesit. Hy het 'n steggie uit die land geneem, dit in 'n saailand geplaas, in 'n weiland by baie water; soos 'n wilgerlat het hy dit ingelê. Dit het uitgespruit en 'n wingerdstok geword, geil groeiend, laag oor die grond, dat sy blare na die arend gedraai is, en sy wortels onder die arend is. So het dit 'n wingerdstok geword, ranke gevorm en lote uitgestoot. “ ‘ “Daar was 'n ander groot arend, met groot vlerke en baie vere. En kyk, hierdie wingerdstok buig toe sy wortels na hom, sy blare stoot hy uit na hom, uit die beddings waar hy geplant was, sodat dié arend hom sou water gee. In 'n goeie stuk grond, by baie water, was dit geplant, sodat dit lootjies kon maak, vrug kon dra, 'n edel wynstok kon word.” ’ “Sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Sal dit gedy? Sal die arend nie selfs sy wortels uitpluk, sy vrugte afstroop, sodat die wingerdstok verdor, al sy nuwe lote verdroog nie? 'n Magtige arm en 'n groot leërmag is nie nodig om hom van sy wortels af uit te trek nie. Kyk, dit is verplant. Sal dit gedy? Sal dit nie, as 'n oostewind dit tref, heeltemal verdroog, in die bedding waar dit groei, verdor nie?” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Sê tog vir die rebelse huis, ‘Weet julle nie wat dit beteken nie?’ Sê, ‘Kyk, die koning van Babilonië het na Jerusalem gekom, haar koning en •hoë amptenare weggeneem en hulle na hom in Babel geneem. Hy het een uit die koninklike familie geneem, met hom 'n verdrag gesluit en hom onder 'n vervloeking geplaas. Die ander maghebbers van die land het hy weggeneem, sodat die koninkryk laag sou bly, homself nie sou verhef nie en sy verdrag moes nakom, ten einde so staande te bly. “ ‘ Maar die man het in opstand gekom teen die koning van Babilonië deur sy gesante na Egipte te stuur, sodat dié vir hom perde en 'n groot leërmag sou gee. Sal hy sukses behaal? Sal hy wat dit gedoen het, vrykom? Sal hy die verdrag verbreek en vrykom? “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here: “in die plek van die koning wat hom koning gemaak het, wie se vervloeking hy geminag het en wie se verdrag hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterf. Die farao sal hom nie met 'n groot leër en baie afdelings soldate bystaan in die oorlog wanneer 'n beleëringswal opgehoop en beleëringswerke opgerig word om baie lewens te vernietig nie. Hy het 'n vervloeking geminag deur 'n verdrag te verbreek. Kyk, hy het sy hand gegee, en tog al hierdie dinge gedoen. Hy sal nie vrykom nie.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “So seker as wat Ek leef, dit is 'n vervloeking deur My wat hy geminag het, en my verdrag wat hy verbreek het. Ek sal dit op sy kop laat neerkom. Ek sal my vangnet oor hom uitsprei; hy sal gevang word in my jagnet. Ek sal hom na Babel neem en hom daar voor die gereg daag oor sy troubreuk wat hy teen My gepleeg het. Sy hele keurkorps onder al sy troepe – deur die swaard sal hulle val. Dié wat oorbly, sal in alle windrigtings versprei word. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, gepraat het.” “ ‘ So sê my Heer, die Here: “Ek sal self die boonste top van 'n seder neem en dit inlê. Van die bopunt van sy lote sal Ek 'n sagte deel afpluk, en Ek sal dit self plant op 'n hoë en verhewe berg. Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal lote maak en vrug dra. Dit sal 'n luisterryke seder word, en al die voëls, al die gevleueldes, sal onder hom tuis wees. In die skadu van sy blare sal hulle 'n tuiste vind. Dan sal al die bome in die veld besef dat Ek, die Here, die hoë boom laag maak, en die lae boom hoog. Ek laat groen bome verdroog en Ek laat droë bome bloei. Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik oor die land Israel, ‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’? “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Heer, die Here, “dit sal nie meer by julle opkom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie. Kyk, alle lewens – aan My behoort dit. Soos die lewe van die seun, so ook die lewe van die vader – aan My behoort dit. Die persoon wat sonde doen, dié moet sterf. “Wanneer iemand regverdig is, doen wat reg en billik is, op die berge nie eet nie, sy oë nie rig op die afgodsbeelde van die huis van Israel nie, die vrou van sy medemens nie verontreinig nie, by 'n vrou wat menstrueer, nie kom nie, niemand verdruk nie, die pand wat hy vir skuld neem, teruggee, niemand beroof nie, sy brood aan honger mense gee, wie nakend is, met 'n kleed bedek, nie teen rente uitleen nie, nie woekerrente neem nie, van onreg hom weerhou, eerlik oordeel tussen mense, volgens my vaste voorskrifte leef, my bepalings nakom deur eerlik op te tree – hy is regverdig en sal beslis leef.” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. “As iemand egter 'n gewelddadige seun verwek wat bloed vergiet, en helaas enige van hierdie dinge doen – dit terwyl die vader niks daarvan gedoen het nie – as hy wel op die berge eet, die vrou van sy medemens verontreinig, magteloses en behoeftiges verdruk, mense beroof, 'n pand nie teruggegee nie, na die afgodsbeelde opkyk vir hulp, afstootlike dinge doen, op rente uitleen en woekerrente neem, “sal hy bly leef? Hy mag nie bly leef nie. Al hierdie afstootlike dinge het hy gedoen, hy moet beslis sterf. Sy bloedskuld rus op hom. “Maar kyk, as hý 'n seun verwek, en dié het al die sondes van sy vader gesien, dit wat hy gedoen het – ja, hy het dit gesien, maar hy doen nie dieselfde dinge nie – sodat hy op die berge nie eet nie, na die afgodsbeelde van die huis van Israel nie opkyk vir hulp nie, die vrou van sy medemens nie verontreinig nie, niemand verdruk nie, 'n pand nie neem nie, niemand beroof nie, sy brood aan honger mense gee, wie nakend is, met 'n kleed bedek, van onreg hom weerhou, rente en woekerrente nie neem nie, my bepalings uitvoer, en volgens my vaste voorskrifte leef, hý sal nie sterf vir die sondeskuld van sy vader nie – hy sal beslis leef. “Wat sy vader betref, omdat hy afgepers het, 'n stamgenoot beroof het, en wat nie goed is nie, gedoen het tussen sy volksgenote, kyk, hy sal sterf vir sy sondeskuld. “ Maar julle vra, ‘Waarom dra die seun nie die sondeskuld van die vader nie?’ Die seun het egter gedoen wat reg en billik is; al my vaste voorskrifte het hy nagekom en uitgevoer. Hy sal beslis leef. Maar die persoon wat sonde doen, hy sal sterf. 'n Seun sal nie die sondeskuld van 'n vader dra nie, en 'n vader sal nie die sondeskuld van 'n seun dra nie. Die geregtigheid van die regverdige sal op homself van toepassing wees, en die goddeloosheid van 'n goddelose sal op homself van toepassing wees. “ Maar die goddelose, as hy hom bekeer van al sy sonde wat hy gedoen het, en hy kom al my vaste voorskrifte na en doen wat reg en billik is – hy sal beslis leef; hy sal nie sterf nie. Al die oortredings wat hy begaan het – dit sal nie teen hom gehou word nie. Deur die geregtigheid wat hy bewys het, sal hy leef. Sou Ek enige vreugde vind in die dood van 'n goddelose?” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Is vreugde nie eerder daarin geleë dat hy van sy verkeerde paaie terugkeer en leef nie? “ Maar wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen in navolging van al die afstootlike dade wat die goddelose gedoen het – sal hy dit doen en leef? Al die geregtigheid wat hy bewys het, sal nie onthou word nie. Deur die troubreuk wat hy pleeg en die sonde wat hy doen, daardeur sal hy sterf. “ Julle sê egter, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ Luister tog, huis van Israel: Is my optrede onaanvaarbaar? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daaroor sterf. Deur die onreg wat hy doen, sal hy sterf. En wanneer 'n goddelose hom bekeer van die goddeloosheid wat hy begaan het, en hy tree reg en billik op – hy sal sy lewe behou. As hy tot insig gekom het en hom bekeer van al die oortredings wat hy begaan het, sal hy beslis leef – hy sal nie sterf nie. Tog sê die huis van Israel, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ My optrede, is dit onaanvaarbaar, huis van Israel? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede, ” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle 'n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle en leef!” “ Jy dan, hef 'n treurlied aan oor die leiers van Israel. Jy moet sê, ‘Wat 'n leeuwyfie was jou moeder nie! Tussen die leeus het sy gelê; tussen jong leeus het sy haar welpies grootgemaak. Sy het een van haar welpies opgelei; hy het 'n jong leeu geword, en geleer om sy prooi te verskeur; hy het mense verslind. Nasies het van hom gehoor; in hulle vangkuil is hy gevang; met hake het hulle hom na Egipteland geneem. “ ‘Toe sy sien haar hoop is verydel, haar verwagting verlore, het sy een van haar welpies geneem, 'n jong leeu van hom gemaak. Hy het tussen leeus rondgestap, 'n jong leeu geword, geleer om sy prooi te verskeur; hy het mense verslind. Hy het hulle vestings verwoes, hulle dorpe in puin gelê. Die land en alles daarop het gebeef vir die geluid van sy gebrul. Nasies het hulle teen hom opgestel uit die omliggende gebiede; hulle vangnet is oor hom gegooi; in hulle vangkuil is hy gevang. Hulle het hom in 'n halsband met hake gesit, hom na die koning van Babilonië geneem. Hulle het hom in die gevangenis ingeneem, sodat sy stem nie meer gehoor sou word op die berge van Israel nie. “ ‘Met jou moeder was dit soos met 'n wingerdstok in jou wingerd, by water geplant. Dit was vol vrugte en lote van die oorvloed water. Dit het sterk stamme gehad, geskik vir die septers van heersers. Die top daarvan was hoog, bo tussen digte ranke – uitkenbaar aan sy hoogte, aan sy baie blare. “ ‘ Maar dit is in woede uitgeruk, op die grond neergegooi. Die oostewind het sy vrugte laat verdor; sy sterk stamme is afgeskeur en het verdroog, vuur het dit verteer. Nou is dit in die woestyn geplant, in 'n dor en dorstige land. Vuur het uit die stam met sy ranke versprei; dit het sy vrugte verteer. Aan die wingerdstok is nie meer 'n sterk stam, 'n septer om te heers nie.’ “Dit is 'n treurlied; dit moet dien as 'n treurlied.” Dit was op die tiende dag van die vyfde maand in die sewende jaar. Manne uit die oudstes van Israel het gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het voor my gaan sit. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, praat met die oudstes van Israel; sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Is dit om My te raadpleeg dat julle gekom het? So seker as wat Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ Sal jy oor hulle regspreek, mensekind, sal jy regspreek? Die afstootlike optrede van hulle voorouers, maak dit aan hulle bekend. Jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag toe Ek Israel gekies het, het Ek my hand opgehef vir die nageslag van die huis van Jakob, en My aan hulle bekend gestel in Egipteland. Ek het my hand opgehef en gesê, ‘Ek, die Here, is julle God!’ Op daardie dag het Ek my hand vir hulle opgehef dat Ek hulle uit Egipteland sal uitlei na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, 'n land wat oorloop van melk en heuning; dit is 'n sieraad onder al die lande. Ek het vir hulle gesê, ‘Elkeen van julle moet die verfoeilike afgode waarvan hy nie wil afsien nie, wegwerp. Met die afgodsbeelde van Egipte mag julle julle nie verontreinig nie. Ek, die Here, is julle God.’ “ ‘ “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie na My luister nie. Nie een van hulle het die verfoeilike afgode waarvan hulle nie wou afsien nie, weggewerp nie. Die afgodsbeelde van Egipte het hulle nie laat vaar nie. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om daar in Egipteland my toorn op hulle te laat uitwoed. Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies tussen wie hulle was nie – die nasies voor wie se oë Ek My aan Israel bekend gemaak het met die belofte om hulle uit Egipteland uit te lei. “ ‘ “Ek het hulle toe uit Egipteland uitgelei, hulle na die woestyn geneem, en vir hulle my vaste voorskrifte gegee. My bepalings het Ek aan hulle bekend gemaak, dit wat 'n mens moet doen, sodat hy daardeur kan leef. Ook my Sabbatte het Ek vir hulle gegee, sodat dit 'n teken sou wees tussen My en hulle, sodat hulle kon besef dat Ek, die Here, hulle heilig. “ ‘ “Maar die huis van Israel was opstandig teen My in die woestyn. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie, en my bepalings het hulle verwerp, dit wat 'n mens moet uitvoer sodat hy daardeur kan leef. My Sabbatte het hulle gruwelik ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om hulle in die woestyn te vernietig. Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies, ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. Op my beurt het Ek in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle nie sou inbring in die land wat Ek aan hulle sou gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande. Dit is omdat hulle my bepalings verwerp het, my vaste voorskrifte nie gevolg het nie, en my Sabbatte ontheilig het; ja, hulle afgodsbeelde, dit is wat hulle harte bly volg het. Maar Ek het met soveel medelye na hulle gekyk dat ek hulle nie kon uitdelg nie; Ek het nie aan hulle 'n einde gemaak in die woestyn nie. Ek het egter vir hulle kinders in die woestyn gesê, ‘Die vaste voorskrifte van julle ouers moet julle nie volg nie; hulle bepalings moet julle nie nakom nie; met hulle afgodsbeelde moet julle julle nie verontreinig nie. Ek, die Here, is julle God. My vaste voorskrifte moet julle volg en my bepalings moet julle nakom; julle moet dit uitvoer. My Sabbatte moet julle heilig hou, sodat dit 'n teken kan wees tussen My en julle, sodat julle kan erken dat Ek, die Here, julle God is.’ “ ‘ “Maar die kinders was opstandig teen My. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie; my bepalings het hulle nie nougeset nagekom nie – bepalings wat die mens moet uitvoer, sodat hy daardeur kan leef – en my Sabbatte het hulle ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om my toorn op hulle te laat uitwoed in die woestyn. Maar Ek het my hand teruggehou; Ek het ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. Op my beurt het Ek daar in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle sou versprei onder die nasies, hulle sou verstrooi in ander lande, omdat hulle my bepalings nie uitgevoer het nie, my vaste voorskrifte verwerp het en my Sabbatte ontheilig het. Hulle oë was net gevestig op die afgodsbeelde van hulle voorouers. Op my beurt het Ek vir hulle voorskrifte toegelaat wat nie goed was nie, en bepalings waardeur hulle nie sou bly leef nie. Ek het hulle •onrein laat word deur hulle geskenke, wanneer hulle elke eersteling van die moederskoot offer. Ek het dit toegelaat, sodat Ek hulle verbysterd kon laat, sodat hulle sou besef dat Ek die Here is.” ’ “Daarom, praat met die huis van Israel, mensekind, en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ook nog hierin het julle voorouers My bespot deur hulle troubreuk wat hulle teenoor My gepleeg het: Ek het hulle na die land gebring waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee. Maar hulle het elke hoë heuwel en elke blaarryke boom raakgesien, en daar hulle •offers geslag, daar tot my ergernis hulle offergawes aangebied, daar hulle geurige offers neergesit en daar hulle •drankoffers uitgegiet. Ek het toe vir hulle gevra, ‘Watter hoogte is dit dié waarheen julle gaan?’ ” ’ ” En hulle het dit •Offerhoogte genoem. Dit is vandag nog so. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Wil julle julleself op dieselfde wyse as julle voorouers verontreinig en agter hulle verfoeilike afgode aan hoereer deur julle offergawes aan te bied, julle seuns te offer, julleself tot vandag toe te verontreinig met al julle verfoeilike afgode? Moet Ek My dan deur julle laat raadpleeg, huis van Israel? So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie. Wat in julle gedagte opgekom het, sal beslis nie gebeur nie, naamlik dat julle dink: Ons wil soos die nasies wees, soos die volksgroepe van ander lande, deur hout en klip te dien. So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “Ek sal met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm en met woede wat uitgestort word, oor julle regeer. Ek sal julle uitlei tussen die volke, julle byeenbring uit die lande waarheen julle versprei is, met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm, met woede wat uitgestort word. Ek sal julle na die woestyn van die volke neem, en daar sal Ek julle van aangesig tot aangesig voor die gereg daag. Soos Ek julle voorouers in die woestyn van Egipteland voor die gereg gedaag het, so sal Ek julle voor die gereg daag,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “ Ek sal julle onder my herderstaf laat deurgaan en julle in die band van die verbond laat ingaan. Ek sal van julle afskei dié wat in opstand is en teen My oortree. Uit die land waar hulle as •vreemdelinge vertoef, sal Ek hulle uitlei, maar op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. “ ‘ “En julle, huis van Israel,” so sê my Heer, die Here, “gaan dien elkeen van julle sy afgodsbeelde! Maar daarna, as julle nie na My luister nie...! My heilige Naam sal julle nie weer ontheilig met julle offergawes en julle afgodsbeelde nie! Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel, ” is die uitspraak van my Heer, die Here, “daar sal die hele huis van Israel My dien, almal in die land. Daar sal Ek hulle aanvaar, en daar sal Ek julle •wydingsgeskenke, die keur van julle gawes, saam met al julle •heilige gawes, eis. As 'n geurige offer sal Ek julle aanvaar wanneer Ek julle van die volke af uitlei, julle byeenbring uit die lande waarheen julle versprei is. Ek sal My deur julle as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle na die grond van Israel bring, na die land waaroor Ek my hand opgehef het om dit vir julle voorouers te gee. Julle sal daar terugdink aan julle optrede, aan al julle dade waarmee julle julleself verontreinig het. Julle sal walg van julleself, van al die booshede wat julle aangerig het. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek met julle handel ter wille van my Naam, en nie ooreenkomstig julle bose optrede, julle wangedrag nie, huis van Israel.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, draai jou gesig suidwaarts en preek driftig teen die suide, profeteer teen die struikgewas van die Negev. Jy moet vir die struikgewas van die Negev sê, ‘Hoor die woord van die Here. So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan nou 'n vuur in jou aansteek. Dit sal al die groen hout en al die droë hout in jou verbrand. Die vlammende vuur sal nie uitbrand nie, en die hele oppervlakte sal daardeur verskroei word, van die Negev af noordwaarts. Al wat leef, sal sien dat Ek, die Here, dit aangesteek het. Dit sal nie uitbrand nie.” ’ ” Daarop het ek gesê: “Ag, Here, my Heer, hulle sê oor my, ‘Praat hy nie maar net in raaisels nie?’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, draai jou gesig na Jerusalem, preek driftig teen die heiligdomme en profeteer teen die land Israel. Sê vir die land Israel, ‘So sê die Here: “Dit is Ek teen jou! Ek gaan my swaard uit sy skede trek en regverdiges en goddeloses uit jou uitroei. Omdat Ek regverdiges en goddeloses uit jou gaan uitroei, daarom sal my swaard uit sy skede kom teen al wat leef, van suid tot noord. En al wat leef, sal besef dat Ek, die Here, my swaard uit sy skede getrek het. Dit sal nie weer teruggesit word nie.” ’ “En jy, mensekind, kla! As 'n gebroke man moet jy voor hulle oë bitterlik kla. Wanneer hulle vir jou vra, ‘Waarom kla jy?’ moet jy sê, ‘Oor 'n berig, want dit kom! Elke hart sal ineenkrimp, alle hande sal slap hang, elke gees verslae wees en alle knieë water word. Kyk, dit kom; dit sal gebeur! Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer. “Sê dan: 'n Swaard, 'n swaard wat skerpgemaak, ook blinkgevryf is! Om 'n slagting aan te rig, is dit skerpgemaak; om soos weerlig te wees, is dit blinkgevryf. “ ‘ “Of dink julle, ons sal ons verheug oor die septer van my seun? Die swaard minag elke stuk hout! Hy het dit oorgegee om dit blink te vryf; om dit in die handpalm vas te vat, is dit skerpgemaak, hierdie swaard. En dit is nou blink gevryf, om dit oor te gee in die hand van 'n moordenaar. “ ‘ “Roep om hulp en huil, mensekind! Want die swaard is teen my volk, dit is teen al die leiers van Israel gerig. Uitgelewer aan die swaard is hulle, saam met my volk. Daarom, slaan op die heup! Ja, dit is 'n toets: Wat gebeur as ook die septer wat deur die swaard geminag word, nie meer daar is nie?” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “En jy, mensekind, profeteer! Klap jou hande teen mekaar, sodat die swaard twee keer tref, 'n derde keer – die swaard vir onheiliges, die swaard vir die groot onheilige, wat diep in hulle indring, sodat harte sidder, en dié waaroor mens struikel, baie sal wees. Teen al hulle poorte het Ek die slagting deur die swaard gerig. Aha! Die swaard is gemaak as 'n weerlig, blink gevryf vir 'n slagting. Bewys jouself skerp, swaard! Kap regs, kap links, waarheen jou snykant ook al gerig is. Op my beurt klap Ek dan my hande teen mekaar, en bring Ek my woede tot bedaring. Ek, die Here, het gepraat. ” Toe het die woord van die Here tot my gekom: “Jy, mensekind, merk vir jou twee paaie af vir die swaard van die koning van Babilonië om langs te kom. Uit een land moet albei kom. 'n Wegwyser moet jy oopkap, by die begin van die pad wat na die stede lei, moet jy dit oopkap. Die paaie wat jy moet afmerk vir die swaard om langs te kom, is Rabba van die Ammoniete en Juda, die versterkte Jerusalem. Want die koning van Babilonië staan reeds by die vurk in die pad, by die begin van die twee paaie, om 'n voorteken te vra. Hy het die pyle geskud, hy het die huisgode geraadpleeg, hy het die lewer beskou. In sy regterhand is die voorteken, Jerusalem, om stormramme op te stel, om die bevel, ‘Maak dood!’ uit te roep, om 'n oorlogskreet aan te hef, om stormramme by die poorte op te stel, om 'n beleëringswal op te hoop, om beleëringswerke op te rig! Vir hulle sal dit lyk na 'n vals voorteken; hulle het tog plegtige ede afgelê! Maar hy sal skuld in herinnering roep, sodat hulle gevange geneem word. “Daarom, so sê my Heer, die Here, ‘Omdat julle julle eie skuld opgehaal het deur julle oortredings openbaar te maak, deur julle sondes te vertoon met alles wat julle doen, omdat julle die aandag op julle gevestig het, sal julle met 'n vaste greep gevange geneem word. En wat jou betref, onheilige, goddelose leier van Israel, jy wie se dag aangebreek het in die tyd van finale straf,’ so sê my Heer, die Here, ‘Weg met die tulband! Af met die kroon! Dit is nie soos dit was nie. Die nederige moet verhoog word en die hoë moet verneder word. Puin, puin, ja, puin maak Ek haar – ook dit het nog nooit gebeur nie – wanneer hy kom wat die vonnis moet voltrek; Ek sal die oordeel aan hom toevertrou.’ “En jy, mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here, oor die Ammoniete en hulle bespotting. ’ Sê dan, ‘Swaard, swaard getrek vir 'n slagting, blink gevryf vir vernietiging, sodat jy 'n weerligstraal is – terwyl visioene oor jou vals is, die voorspelling oor jou leuens is, plaas hy jou op die nekke van die onheilige goddeloses, hulle wie se dag gekom het in die tyd van finale straf. “ ‘Sit dit terug in sy skede! Op die plek waar jy gemaak is, swaard, in die land van jou oorsprong, sal Ek jou oordeel. Ek sal my verontwaardiging oor jou uitstort, die vuur van my gramskap sal Ek teen jou aanblaas. Ek sal jou oorgee in die hand van woeste mense, vakmanne van vernietiging. Jy is vir die vuur bestem om verteer te word; jou bloed sal in jou eie grond wees, jy sal nie meer onthou word nie, ja, Ek, die Here, het gepraat.’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ En jy, mensekind, sal jy regspreek, sal jy regspreek oor die stad van bloed? Maak aan haar al haar afstootlike dade bekend. Jy moet sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Stad wat in haar midde bloed vergiet, sodat haar tyd aanbreek; wat afgodsbeelde in haar maak, sodat sy •onrein word; deur jou bloed wat jy vergiet het, is jy skuldig; deur jou afgodsbeelde wat jy gemaak het, het jy onrein geword. Jy het jou dag laat aanbreek, jy het jou jare bereik. Daarom lewer Ek jou uit aan bespotting deur die nasies, aan die spotlag van alle lande. Dié wat naby jou is en dié wat ver van jou is, lag jou uit – jy, met die besoedelde naam, jy, so vol paniek. Kyk, die leiers van Israel, elkeen is daar in jou net vir eie gewin, sodat bloed vergiet word. Vaders en moeders word in jou geminag; •vreemdelinge word uitgebuit in jou midde; vaderloses en weduwees word in jou verdruk. Wat vir My heilig is, minag jy, en my Sabbatte ontheilig jy. Mense wat kwaad stook, is in jou, sodat bloed vergiet word. Hulle wat op die berge eet, is in jou. Skandelike dade doen hulle in jou midde: Die naaktheid van vaders word in jou ontbloot; vroue, onrein tydens menstruasie, word in jou verkrag; hulle doen wat afstootlik is met mekaar se vroue; 'n man verontreinig sy skoondogter deur 'n skandelike daad; 'n man verkrag sy suster, dogter van sy vader, in jou. In jou word omkoopgeld aanvaar, sodat bloed vergiet word. Rente en woekerrente neem jy, jy berokken jou naaste skade deur uitbuiting, en My vergeet jy.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Kyk, Ek slaan my hande saam oor die onregverdige wins wat jy gemaak het en oor die bloedskuld wat daar in jou midde is. Sal jou hart standhou of jou hande sterk bly in die tyd wanneer Ek teen jou optree? Ek, die Here, het gepraat, en Ek gaan optree. Ek gaan jou versprei onder die nasies, jou verstrooi in die lande; Ek gaan jou onreinheid volledig uit jou verwyder. Wanneer jy deur jou eie toedoen ontheilig word voor die nasies, sal jy besef dat Ek die Here is.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, die huis van Israel het vir my metaalskuim geword; hulle almal is die koper, tin, yster en lood wat in 'n smeltoond agterbly. Metaalskuim van silwer het hulle geword. Daarom, so sê die Heer, die Here, ‘Omdat julle almal metaalskuim geword het, daarom, kyk, in Jerusalem gaan Ek julle saamgooi. Silwer, koper, yster, lood of tin word in 'n smeltoond saamgegooi om vuur daarteen aan te blaas, sodat dit smelt. So sal Ek julle saamgooi in my toorn en woede, julle ingooi en julle laat smelt. Ek sal julle bymekaarmaak en die vuur van my gramskap teen julle aanblaas, en julle sal in die stad smelt. Soos silwer in 'n pot gesmelt word, so sal julle in die stad gesmelt word. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, my woede oor julle uitgestort het.’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, sê vir die land, ‘Jy is 'n land wat nie rein verklaar kan word nie, wat op die dag van vervloeking sy reën nie kry nie, wie se leiers in hom soos brullende leeus is wat 'n prooi verskeur – lewens verslind hulle; skatte en kosbaarhede vat hulle; weduwees in die land maak hulle meer.’ Sy priesters doen my wet geweld aan; hulle ontheilig wat vir My heilig is; tussen wat heilig en wat onheilig is, maak hulle geen onderskeid nie; die verskil tussen rein en onrein maak hulle nie bekend nie. Vir my Sabbatte sluit hulle die oë, en my heiligheid word aangetas onder hulle. Die •hoë amptenare van die land is in hom soos wolwe wat 'n prooi verskeur – om bloed te vergiet en lewens te vernietig, sodat hulle onregverdige wins kan maak. Sy profete pleister alles vir hulle toe met kalk: Hulle sien vals visioene en voorspel leuens. Hulle sê altyd, ‘So sê my Heer, die Here, ’ terwyl die Here nie gepraat het nie. Die volk van die land buit mense uit en beroof hulle. Die magteloses en behoeftiges verdruk hulle, en vreemdelinge pers hulle af asof hulle geen regte het nie. “ Ek het onder hulle iemand gesoek wat 'n klipmuur kan pak en wat voor My in die bres kan tree vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek kon niemand kry nie. Daarom stort Ek my verontwaardiging oor hulle uit; met die vuur van my gramskap vernietig Ek hulle. Ek laat hulle optrede op hulle koppe neerkom.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, daar was twee vroue, dogters van een moeder. Hulle het in Egipte gehoereer, reeds in hulle jeug het hulle gehoereer. Daar is hulle borste betas en hulle maagdelike tepels gestreel. Hulle name was Ohola, die oudste, en Oholiba, haar suster. Hulle het myne geword en het seuns en dogters in die wêreld gebring. Wat hulle name betref: Samaria is Ohola en Jerusalem is Oholiba. “ Ohola het gehoereer terwyl sy onder my gesag was. Sy het gesmag na haar minnaars, die Assiriërs, vegters geklee in pers, •streekgoewerneurs en landvoogde, almal aantreklike jong manne, kavaliers wat op perde ry. Sy het haar dade van owerspel aangebied aan hulle, die keur van die Assiriërs, aan hulle almal; en met almal na wie sy gesmag het, met al hulle afgodsbeelde, het sy haar verontreinig. Haar dade van owerspel wat in Egipte begin het, het sy nie laat vaar nie; want die Egiptenare het met haar gemeenskap gehad in haar jeug. Dit is hulle wat haar maagdelike tepels gestreel en hulle owerspeligheid op haar uitgestort het. “Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die Assiriërs na wie sy gesmag het. Dit is hulle wat haar naaktheid ontbloot het, haar seuns en dogters weggevat en haar met die swaard doodgemaak het. Sy was berug onder die vroue. Vonnisse is aan haar voltrek. “Haar suster Oholiba het dit gesien, maar in haar wellus was sy meer verdorwe as haar suster, en haar dade van owerspel was nog erger as die hoerery van haar suster. Na die Assiriërs het sy gesmag, na streekgoewerneurs en landvoogde, vegters wat weelderig geklee is, kavaliers wat op perde ry – almal aantreklike jong manne. Ek het gesien dat sy haarself verontreinig. Die twee van hulle het dieselfde pad geloop. Maar sy het nog dade van owerspel bygevoeg. Sy het manne uitgekerf teen 'n muur gesien, afbeeldings van Galdeërs uitgekerf in 'n helderrooi kleur, hulle heupe met lendedoeke omgord, op hulle koppe •tulbande met afhangende punte, almal met die voorkoms van strydwa-offisiere – die afbeelding van Babiloniërs met Galdea as hulle geboorteland. Sy het na hulle gesmag toe haar oë op hulle val, en gesante gestuur na hulle, na Galdea. “Die Babiloniërs het na haar gekom ter wille van die liefdesbed. Hulle het haar verontreinig met hulle owerspel. Nadat sy •onrein geword het deur hulle, het sy 'n diep weersin in hulle gekry. Toe sy haar dade van owerspel openlik bedryf, haar naaktheid ontbloot het, het Ek 'n diep weersin in haar gekry, net soos Ek 'n diep weersin in haar suster gekry het. “ Maar sy het nog dade van owerspel bygevoeg, om so haar jong dae toe sy in Egipteland gehoereer het, weer op te roep. Sy het gesmag na buite-egtelike verhoudings met hulle, hulle wie se organe soos dié van donkiehingste en wie se saadstorting soos dié van perdehingste is. “Jy het die skandelike dade van jou jeug weer opgesoek, toe van die Egiptenare jou tepels gestreel, jou jong borste betas het. Daarom, Oholiba,” so sê my Heer, die Here, “kyk, Ek gaan jou minnaars teen jou aanhits, hulle in wie jy 'n diep weersin gekry het. Ek gaan hulle van oraloor teen jou bring: die Babiloniërs en al die Galdeërs, Pekod, Soa en Koa, en al die Assiriërs by hulle, aantreklike jong manne, almal van hulle streekgoewerneurs en landvoogde, strydwa-offisiere en manne wat opgeroep is – almal ruiters te perd. Hulle sal teen jou optrek uit die noorde met strydwatroepe op wiele en 'n strydmag van manskappe. Met grootskilde, kleinskilde en helms sal hulle teen jou stelling inneem, reg rondom. Ek sal die vonnis aan hulle oorlaat; hulle sal jou oordeel volgens hulle regsreëls. Ek sal my heilige jaloesie teen jou rig, en hulle sal in woede met jou handel. Jou neus en ore sal hulle afsny, en wat van jou oorbly, sal deur die swaard val. Dit is hulle wat jou seuns en dogters sal wegneem; wat van jou oor is, sal deur vuur verteer word. Hulle sal jou klere van jou afstroop en jou versiersels vat. So sal Ek 'n einde maak aan jou skandelike gedrag en hoerery wat in Egipteland begin het. Jy sal nie meer na hulle opkyk en aan Egipte sal jy nie weer terugdink nie. ” Ja, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle in wie jy 'n diep weersin gekry het. Hulle sal met haat teen jou optree, alles wat jy met moeite verwerf het, wegvat, en jou onbedek en kaal agterlaat. Jou ontugtige naaktheid sal ontbloot word. Jou skandelike gedrag en jou dade van owerspel het hierdie dinge oor jou gebring, toe jy agter nasies aan gehoereer het, deurdat jy jouself met hulle afgodsbeelde verontreinig het. Die pad van jou suster het jy geloop, en Ek sal haar beker in jou hand gee.” So sê my Heer, die Here: “Die beker van jou suster sal jy drink, 'n diep en wye beker. Dit sal 'n gelag en 'n gespot meebring, soveel bevat dit. Met dronkenskap en verdriet sal jy gevul wees. 'n Beker van vernietiging en verwoesting is die beker van jou suster Samaria. Jy sal dit drink en leeg slurp, en aan die skerwe daarvan knaag; jy sal jou borste afskeur. Ja, Ek het gepraat.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat jy My vergeet en die rug op My gedraai het, sal jy ook die gevolge van jou skandelike gedrag en jou dade van owerspel moet dra.” Toe sê die Here vir my: “Mensekind, sal jy regspreek oor Ohola en Oholiba? Hou dan hulle afstootlike dade aan hulle voor. Ja, hulle het egbreuk gepleeg, en daar is bloed aan hulle hande. Met hulle afgodsbeelde het hulle egbreuk gepleeg, en hulle het selfs hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, vir die beelde as voedsel deur die vuur laat gaan. Verder het hulle die volgende aan My gedoen: Hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig, en my Sabbatte het hulle ontheilig. Toe hulle hulle kinders geslag het vir hulle afgodsbeelde, het hulle op dieselfde dag na my heiligdom gekom om dit te ontheilig. Kyk, so het hulle binne-in my huis opgetree. Maar erger nog: Hulle ontbied toe mans wat van ver af kom, mans na wie 'n boodskapper gestuur is! En kyk, hulle het gekom, die mans vir wie jy jou gewas, jou oë geverf, en jouself met juwele versier het. Jy het op 'n statige bed gesit, met 'n voorbereide tafel daarvoor. My reukwerk en my olie het jy daarop neergesit. “Die geluid van 'n sorgelose menigte was binne hoorbaar, en saam met manne uit die gepeupel is daar Sabeërs uit die woestyn gebring. Hulle het armbande aan die twee susters se polse gesit, en sierlike krone op hulle koppe. Ek het oor haar wat afgeleef is van owerspel, gesê, ‘Nou gaan hulle voort met haar owerspel; maar dit is hoe sy is! Hulle het by haar ingegaan. Soos wat daar by 'n prostituut ingegaan word, so het hulle by Ohola en Oholiba ingegaan, die sedelose vroue! Maar regverdige mans, hulle sal die vroue veroordeel volgens die vonnis van egbreeksters en die vonnis van hulle wat bloed vergiet. Ja, egbreeksters is hulle, en bloed is aan hulle hande.’ ” Ja, so sê my Heer, die Here: “Laat 'n skare teen hulle optrek, en gee hulle oor aan verskrikking en plundering. Laat 'n skare hulle met klippe doodgooi en met hulle swaarde neerkap, hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand. So sal Ek skandelike gedrag in die land tot 'n einde bring, en alle vroue sal dit as 'n waarskuwing beskou, en nie julle skandelike gedrag navolg nie. Hulle sal julle skandelike dade op julle koppe laat neerkom; julle sonde met julle afgodsbeelde sal julle moet dra. Dan sal julle besef dat Ek my Heer, die Here, is.” Die woord van die Here het tot my gekom in die negende jaar, op die tiende dag van die tiende maand: “Mensekind, skryf vir jou die naam op van hierdie dag, hierdie spesifieke dag; want die koning van Babilonië het op hierdie spesifieke dag die druk op Jerusalem begin toepas. Vertel dan vir die rebelse huis 'n gelykenis, en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Sit 'n pot op, sit dit op, en gooi ook water daarin. Sit stukke vleis daarin, al die goeie stukke – boud en blad; maak dit vol met die beste bene. Die beste van die kleinvee, neem dit, pak ook bene onder die pot. Bring die kooksel in die pot tot by kookpunt, ook die bene moet daarin gaar kook. “ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here: “Wee die stad van bloedskuld – 'n pot met roes daarin! Die roes sal nie afkom nie! Stuk vir stuk moet jy die vleis uithaal. Die lot word nie oor die stad gewerp nie. Ja, haar bloed is in haar. Op 'n kaal rotsplaat het sy dit laat beland; sy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met los grond te bedek nie. Om woede op te wek, om wraak te neem, het Ek die bloed op die kaal rotsplaat gelaat, sodat dit nie bedek word nie. “ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here: “Wee die stad van bloedskuld! Op my beurt maak Ek die houtstapel groot: Bring meer hout; steek aan die vuur! Laat die vleis deurkook, laat die sous wegkook – die bene moet verkool! Laat die pot leeg staan op die kole, sodat dit warm kan word, die brons daarvan kan gloei, die •onreinheid daarin kan smelt, die roes daarvan kan wegbrand! Dit is vergeefse moeite; die dik laag roes kom nie af nie. Die roes moet in die vuur in! Jou onreinheid is 'n skandelike daad. Omdat Ek jou wou reinig, maar jy nie van jou onreinheid wil afsien nie, sal jy nie weer rein wees totdat Ek my woede teen jou tot bedaring gebring het nie. “ ‘ “Ek, die Here, het gepraat. Dit is aan die kom; Ek gaan dit doen; Ek sal dit nie nalaat nie; Ek sal nie jammer kry nie. Volgens jou optrede, volgens jou dade, sal hulle jou oordeel.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, kyk, Ek gaan wat jy kosbaar ag, met 'n swaar slag van jou wegneem. Maar jy mag nie rou en treur nie; jou trane mag nie vloei nie. Sug in stilte. Aan 'n rouplegtigheid vir dooies mag jy nie deelneem nie. Bind jou •tulband om jou kop en trek jou sandale aan jou voete. Moenie jou snor bedek nie, en kos wat mense vir jou bring, mag jy nie eet nie. ” Ek het die oggend met die mense gepraat, en die aand het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend toe gedoen soos ek beveel is. Die mense het vir my gesê: “Wil jy nie vir ons vertel wat dit vir ons beteken dat jy so optree nie?” Ek het hulle geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom, ‘Sê vir die huis van Israel: “So sê my Heer, die Here, ‘Kyk, Ek gaan my heiligdom ontheilig, daardie bron van julle verwaandheid, wat so kosbaar is in julle oë en wat die hartstog van julle lewens is. Julle seuns en dogters wat julle daar agtergelaat het, sal val deur die swaard.’ Dan moet julle doen wat ek gedoen het: Julle snorre mag julle nie bedek nie, en die kos wat mense bring, mag julle nie eet nie. Julle tulbande moet op julle koppe wees, en julle sandale aan julle voete; julle mag nie rou en treur nie. Maar julle sal wegteer weens julle sondeskuld en sug teenoor mekaar. ‘Esegiël sal vir julle 'n teken wees: Net soos hy gedoen het, moet julle doen. Wanneer dit gebeur, sal julle besef dat Ek, die Heer, die Here is.’ ” “ ‘En jy, mensekind, die dag wanneer Ek hulle bergvesting van hulle wegneem, hulle pragtige bron van vreugde wat so kosbaar is in hulle oë, hulle hartsverlange, ook hulle seuns en dogters, op daardie dag sal een wat ontkom het, beslis by jou aankom met 'n berig vir jou persoonlik. Op daardie dag sal jou mond oopgaan teenoor die een wat ontkom het; jy sal kan praat, en jy sal nie meer stom wees nie. So sal jy vir hulle 'n teken wees, en hulle sal besef dat Ek die Here is.’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, draai jou gesig na die Ammoniete en profeteer teen hulle. Jy moet vir die Ammoniete sê, ‘Hoor die woord van my Heer, die Here: So sê my Heer, die Here: “Omdat jy, Ammon, ‘Aha!’ gesê het vir my heiligdom toe dit ontheilig is, vir die land Israel toe dit verwoes is, vir die huis van Juda toe hulle in ballingskap gegaan het, daarom, kyk, Ek gaan jou aan mense uit die ooste as eiendom gee. Hulle sal hulle kampe in jou oprig, in jou hulle woonplekke vestig. Dit is hulle wat jou vrugte sal eet; dit is hulle wat jou melk sal drink. Ek sal Rabba 'n weiveld vir kamele maak, by die Ammoniete 'n lêplek vir kleinvee inrig. Julle sal besef dat Ek die Here is.” “ ‘Ja, so sê my Heer, die Here: “Omdat jy jou hande geklap en jou voete gestamp het, en innerlike vreugde gevind het in jou veragting vir die land Israel, daarom, kyk, “Ek strek my hand teen jou uit; Ek gee jou as 'n buit aan die nasies; Ek roei jou uit onder die volke; Ek laat jou verdwyn uit die lande; Ek delg jou uit. Jy sal besef dat Ek die Here is.” ’ ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat Moab en Seïr sê, ‘Kyk, soos al die nasies, so is die huis van Juda ook maar’, daarom, kyk, Ek gaan die berghange van Moab blootstel, van die stede af, al sy stede tot die laaste een toe, die sieraad van die land, Bet-Jesimot, Baäl-Meon, ja, tot by Kirjatajim. Aan mense uit die ooste sal Ek die land as eiendom gee saam met die Ammoniete, sodat daar onder die nasies nie meer aan die Ammoniete gedink sal word nie. So sal Ek oor Moab oordele voltrek. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat Edom met wraaksug opgetree het teen die huis van Juda, hulle volledig skuldig gemaak het deur op hulle wraak te neem, daarom,” so sê my Heer, die Here, “strek Ek my hand uit teen Edom. Ek sal mens en dier daaruit uitroei. Ek sal die land 'n puinhoop maak van Teman af tot by Dedan, en deur die swaard sal hulle val. Ek sal my wraak op Edom uitoefen deur die hand van my volk Israel. Hulle sal teen Edom optree ooreenkomstig my toorn en my woede. Edom sal my wraak leer ken.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat die Filistyne met wraak opgetree het, hulle met sielsveragting gewreek het, met die doel om te verwoes, op grond van 'n ewigdurende vyandskap, daarom,” so sê my Heer, die Here, “kyk, Ek strek my hand uit teen die Filistyne; Ek gaan hierdie mense van Kreta uitroei. Ek gaan dié wat oorgebly het uit die kusvlakte vernietig. Ek gaan teen hulle optree met verskriklike wraak, hulle met woede straf. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my wraak oor hulle bring.” ’ ” In die elfde jaar, op die eerste dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: “Mensekind, omdat Tirus oor Jerusalem gesê het, ‘Aha! Die deure na die volke is oopgebreek, dit het na my kant oopgeswaai; noudat sy in puin lê, sal ek gevul word’ – daarom, so sê die Heer, die Here, ‘Dit is Ek teen jou, Tirus! Ek sal baie nasies teen jou laat opstaan, soos die see sy golwe laat opstaan. Hulle sal die stadsmure van Tirus verwoes en haar torings afbreek. Ek sal die grond van haar afskraap, haar 'n kaal rotsplaat maak. 'n Droogmaakplek vir sleepnette sal jy word, midde-in die see; want Ek het gepraat,’ is die uitspraak van die Heer, die Here. ‘Tirus sal 'n buit wees vir die nasies, en haar dogters wat in die veld is – met die swaard sal hulle doodgemaak word. Hulle sal besef dat Ek die Here is. “Ja, so sê die Heer, die Here, ‘Kyk, Ek gaan Nebukadresar, koning van Babilonië, die koning van die konings, uit die noorde na Tirus bring, met perde, strydwaens en ruiters, met 'n strydmag, 'n menigte manskappe. Jou dogters in die veld sal hy met die swaard doodmaak, hy sal beleëringswerke teen jou oprig, beleëringswalle teen jou ophoop, 'n skilddak teen jou opstel. Die houe van sy stormramme sal hy teen jou mure rig, jou torings sal hy met sy breekysters afbreek. Sy magdom perde sal jou met hulle stofwolk bedek. Van die geluid van die spanne perde, die wiele en strydwaens sal jou stadsmure bewe wanneer hy by jou poorte ingaan, soos met die inval in 'n stad waarvan die mure deurbreek is. Met die hoewe van sy perde sal hy al jou strate vertrap. Jou mense sal hy met die swaard doodmaak. Jou magtige suile sal op die grond val. Hulle sal jou rykdomme roof, jou handelsware buitmaak. Hulle sal jou mure afbreek, jou spoghuise sloop. Jou klippe, hout, en grond sal hulle in die water gooi. “ ‘ Ek maak 'n einde aan die lawaai van jou liedere; die klank van jou liere sal nie meer gehoor word nie. Ek maak jou 'n kaal rotsplaat, 'n droogmaakplek vir sleepnette sal jy wees. Jy sal nie weer herbou word nie, want Ek, die Here, het gepraat.’ Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. “So sê die Heer, die Here, vir Tirus, ‘ Sal, van die geluid van jou val, by die gekreun van die gewondes, met die groot slagting in jou, die eilande nie bewe nie? Al die leiers langs die see sal van hulle trone afklim, hulle mantels afhaal, hulle veelkleurig geweefde klere uittrek. Met 'n gesidder sal hulle beklee wees; op die grond sal hulle gaan sit, die hele tyd bewe, en verslae wees oor jou. Hulle sal oor jou 'n klaaglied aanhef; hulle sal vir jou sê: “Hoe het jy verdwyn, jy wat uit die seë bevolk is, veelgeroemde stad wat so magtig was op see. Dit is sy en haar inwoners wat 'n skrikbewind gevoer het, ja, al haar inwoners. Nou sidder die eilande op die dag van jou val; die kuslande by die see is angsbevange oor jou uitvaart.” ’ “Ja, so sê die Heer, die Here, ‘Wanneer Ek jou 'n stad in puin maak, soos stede wat nie bewoon word nie, wanneer Ek oor jou die •oerwater laat gaan, jou oordek met massas water, laat Ek jou afgaan saam met dié wat in die put afdaal na die mense van ouds, laat Ek jou woon in die aarde se diepste dele, soos in oeroue ruïnes, saam met dié wat in die put afdaal, sodat jy nie bewoon word, of 'n staanplek het in die land van die lewendes nie. 'n Verskrikking maak ek jou; jy sal nie meer daar wees nie. Jy sal gesoek word, maar nooit weer gevind word nie.’ Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Jy, mensekind, hef oor Tirus 'n klaaglied aan; sê vir Tirus, die stad wat lê by die poorte na die see, wat handel dryf met ander volke, met baie eilande, ‘So sê my Heer, die Here: “Tirus, jy sê, ‘Ek is volmaak in skoonheid.’ In die hart van die seë lê jou gebied; jou bouers het jou skoonheid vervolmaak. Met sipreshout uit Senir het hulle albei jou sykante gebou. 'n Seder uit die Libanon het hulle geneem om vir jou 'n mas te maak. Met eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak. Jou dek het hulle ivoorkleurig gemaak met dennehout uit die eilande van die Kittiërs. Van veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou te dien as vaandel. Pers en purperrooi materiaal uit die eilande van Elisa was jou kajuitbedekking. Inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers, Jou ervare manne, Tirus, was aan boord, hulle was jou seemanne. Veterane van Gebal en sy ervare manne was aan boord om jou lekplekke te kalfater. “ ‘ “Al die skepe op see en hulle matrose was in jou hawe om van jou ruilware te bekom. Persië, Lud en Put was in jou leër as krygsmanne. Skild en helm het hulle in jou opgehang; dit is hulle wat aan jou luister verleen het. Manne uit Arwad en Gelek was rondom op jou mure, en manne uit Gammad – in jou torings was hulle. Hulle het hulle rondeskilde rondom teen jou mure opgehang; dit is hulle wat jou skoonheid vervolmaak het. Tarsis het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed van al die rykdom. Met silwer, yster, tin en lood het hulle betaal vir jou handelsware. Jawan, Tubal en Meseg, hulle was jou handelaars. Met lewende mense en koperware het hulle betaal vir jou ruilware. Uit Bet-Togarma was daar perde, trekperde en muile; hulle het dit vir jou handelsware aangebied. Die mense van Dedan was jou handelaars; baie eilande was jou handelsvennote. Olifanttande en ebbehout het hulle teruggebring as skatplig aan jou. Edom het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed goedere wat jy vervaardig. Met •malagiet, purperrooi en veelkleurig geweefde materiaal, fyn linne, pêrels en •chalcedoon het hulle vir jou handelsware betaal. Juda en die land Israel, hulle was jou handelaars. Met koring uit Minnit, vye, heuning, olyfolie en balsemgom het hulle betaal vir jou ruilware. Damaskus het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed goedere wat jy vervaardig, die oorvloed van al jou rykdom. Met wyn uit Gelbon, wol uit Sagar en wyn uit Usal het hulle vir jou handelsware betaal. Bewerkte yster, kassia en kalmoes was onder jou ruilware. Dedan het met jou handel gedryf in saalkleedjies vir rydiere. Arabië en al die leiers van Kedar, hulle was jou handelsvennote. Met ramlammers, skaap- en bokramme, daarmee het hulle met jou handel gedryf. Die handelaars van Skeba en Rama, hulle was jou handelaars. Met die keur van allerlei speserye, allerlei edelstene en goud het hulle betaal vir jou handelsware. Haran, Kanne en Eden handelaars van Skeba, Assirië en Kilmad het met jou handel gedryf. Hulle was jou handelaars in swierige mantels, pers en veelkleurig geweefde sjaals en kleurryke matte. In gevlegte en geknoopte toue het hulle met jou handel gedryf. Handelskepe het jou ruilware vir jou vervoer. “ ‘ “Jy het vol geword, was baie swaar belaai daar in die hart van die seë. In onstuimige waters het jou roeiers jou gebring. Die oostewind het jou gebreek in die hart van die seë. Jou rykdom, jou handelsware, jou ruilware, jou matrose, jou seemanne, hulle wat jou lekplekke kalfater, dié wat jou ruilware verhandel, al die krygsmanne in jou, ja, saam met die hele strydmag in jou midde, hulle sink weg in die hart van die seë op die dag van jou val. Van die harde hulpgeroep van jou seemanne bewe die weivelde. Hulle verlaat hulle bote – almal wat roeispane vashou; die matrose, al die seevaarders – op die land gaan staan hulle. Hulle laat oor jou hulle stem hoor; bitterlik skreeu hulle dit uit; hulle strooi stof op hulle koppe; in die as rol hulle. Hulle skeer kaal kolle op hulle koppe oor jou, hulle bind rouklere om, hulle huil oor jou met 'n verbitterde siel – dit is 'n bitter rouplegtigheid. Met hulle geweeklaag hef hulle vir jou 'n klaaglied aan; hulle sing 'n klaagsang oor jou, ‘Wie was soos Tirus, wie was soos sy, midde-in die see?’ Toe jou handelsware uitgegaan het op die seë, het jy baie volke versadig; met die oorvloed van jou rykdom en ruilware het jy konings van die aarde ryk gemaak. Nou is jy gebreek deur die seë, in die dieptes van die water. Jou ruilware en jou hele strydmag wat in jou was, het weggesink. Al die bewoners van die eilande staan verslae oor jou. Hulle konings sidder onbedaarlik; hulle gesigte is verwronge van angs. Handelaars onder die volke fluit oor jou; jy het 'n verskrikking geword; jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, sê vir die leier van Tirus, ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat jou hart hoogmoedig geraak het, het jy gesê, ‘Ek is 'n god; in die tuiste van die gode woon ek in die hart van die seë.’ Maar jy is net 'n mens, nie 'n god nie. Jy stel jou insig gelyk aan die insig van gode! Kyk, jy is slimmer as Danel! Geen geheim is vir jou duister nie! Deur jou wysheid en jou insig het jy vir jou vermoë verwerf, goud en silwer in jou skatkamers weggesit. Deur jou buitengewone handelsvernuf het jy jou vermoë vergroot. Maar jou hart het hoogmoedig geraak oor jou rykdom. Daarom,” so sê my Heer, die Here, “omdat jy jou insig gelykstel aan die insig van gode, daarom, kyk, Ek bring vreemdes na jou, die gewelddadigstes van die nasies. Hulle sal die swaard trek teen die skoonheid wat jou wysheid gebring het; hulle sal jou skitterende prag ontwy. Na die grafkuil sal hulle jou laat afdaal; jy sal die dood van 'n deurboorde sterf in die hart van die seë. Sal jy steeds sê, ‘Ek is 'n god’, in die teenwoordigheid van hom wat jou doodmaak, en as jy – 'n mens, nie 'n god nie – in die hande is van hulle wat jou deurboor? Jy sal die dood van 'n onbesnedene sterf aan die hand van vreemdes, want Ek het gepraat.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom, ‘So sê my Heer, die Here: “Jy was die toonbeeld van voortreflikheid, vol wysheid, volmaak in skoonheid. In Eden, die tuin van God, daar was jy. Jy was bedek met alle soorte edelstene: •karneool, •topaas, •akwamaryn, •chrisoliet, •oniks, •jaspis, •lasuursteen, •malagiet en •smarag. Van goud was die insetsels en graverings aan jou bedekking. Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by 'n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied. Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap. Onberispelik was jy in jou optrede vanaf die dag dat jy geskep is, totdat onreg in jou ontdek is. Deur jou uitgebreide handel is jou binneste met geweld gevul; jy het gesondig. Ek het jou as 'n onheilige uitgewerp, weg van die godeberg af. 'n Gerub met vlerke wat beskut, het jou tussen die klippe van vuur uit verdryf. Jou hart het hoogmoedig geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid nutteloos gemaak oor jou skitterende prag. Op die grond het Ek jou neergegooi; voor konings het Ek so met jou gemaak dat hulle hulle in jou kan verlustig. Oor jou baie sondeskuld weens jou onregmatige handelspraktyke, het jy jou heiligdomme ontheilig. Ek het vuur uit jou binneste laat kom; dit het jou verteer. Ek het jou soos as op die grond gemaak voor die oë van almal wat na jou kyk. Almal onder die volke wat jou geken het, was verslae oor jou. Jy het 'n verskrikking geword, jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, draai jou gesig na Sidon, profeteer teen haar en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Sidon! Ek sal roem verwerf in jou midde. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek oordele in haar voltrek. Ek sal Myself in haar as die Heilige betoon. Ek sal 'n epidemie in haar loslaat; daar sal bloed in haar strate wees; die deurboordes sal binne-in haar lê deur die swaard wat aan alle kante teen haar gerig is. Hulle sal besef dat Ek die Here is. “ ‘ “Daar sal nie meer vir die huis van Israel duwweltjies wees wat skerp is, en dorings wat steek van die kant van almal om hulle, almal wat hulle minag nie, want hulle sal besef dat Ek, die Heer, die Here is.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Wanneer Ek die huis van Israel bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is, sal Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. Israel sal woon op die grond wat Ek aan my dienskneg Jakob gegee het. Hulle sal veilig daarop woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek oordele voltrek oor almal wat hulle minag aan alle kante. Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is.” ’ ” In die tiende jaar, op die twaalfde dag van die tiende maand, het die woord van die Here tot my gekom: “Mensekind, draai jou gesig na die farao, die koning van Egipte. Profeteer teen hom en die hele Egipte. Praat en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Farao, koning van Egipte! Jy, die groot krokodil wat tussen sy strome lê, wat sê, ‘Aan my behoort die Nyl, ek het dit self vir my gemaak.’ Ek sal hake deur jou kake steek, die vis van jou strome laat vaskleef aan jou skubbe. Ek sal jou daar tussen jou strome optrek, saam met al die vis van jou strome wat aan jou skubbe vaskleef. Ek sal jou in die woestyn laat lê, jy en al die vis van jou strome. Op die oop veld sal jy bly lê; jy sal nie begrawe word, nie bymekaargemaak word nie. Aan die wilde diere van die aarde, aan die voëls van die hemel gee Ek jou as voedsel. Al die inwoners van Egipte sal besef dat Ek die Here is. Want hulle was 'n riet om op te leun vir die huis van Israel: Toe hulle jou vasvat met die hand, knak jy en skeur elke skouer oop; toe hulle op jou leun, breek jy en laat jy elke lende bewe. ” “ ‘Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek bring 'n swaard teen jou; Ek gaan mens en dier in jou uitroei. Egipteland sal 'n woesteny wees, 'n puinhoop. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” “ ‘ “Omdat hy gesê het, ‘Die Nyl behoort aan my – ek het dit self gemaak,’ daarom, dit is Ek teen jou en jou strome! Ek maak Egipteland verlate puinhope van verwoesting, van Migdol tot by Sewene, tot by die grens van Kus. 'n Voet van 'n mens sal dit nie deurkruis, en die poot van 'n dier sal nie daaroor gaan nie. Dit sal veertig jaar lank nie bewoon word nie. Ek maak Egipteland 'n woesteny tussen lande wat verlate lê. Sy dorpe sal 'n woesteny wees tussen stede wat tot puin verwoes is, veertig jaar lank. Ek sal die Egiptenare versprei onder die nasies en hulle verstrooi in die lande. “ ‘ “Maar,” so sê my Heer, die Here: “aan die einde van veertig jaar sal Ek die Egiptenare bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is. Ek sal die lot van Egipte verander en hulle terugbring na die land Patros, na hulle land van herkoms. Daar sal hulle 'n onbelangrike koninkryk wees. Teenoor ander koninkryke sal hulle onbelangrik wees. Egipte sal homself nie weer verhef bo die nasies nie. Ek sal hulle so gering maak dat hulle nie die nasies sal oorheers nie. Egipte sal nie weer vir die huis van Israel 'n bron van vertroue wees nie, maar 'n land wat hulle herinner aan sondeskuld toe hulle hulle na Egipte gewend het. Hulle sal besef dat Ek, die Heer, die Here is.” ’ ” In die sewe-en-twintigste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die woord van die Here tot my gekom: “ Mensekind, Nebukadresar, die koning van Babilonië, het sy leër 'n verskriklike taak opgelê by Tirus. Elke kop was kaal en elke skouer rou geskuur. Maar by Tirus was daar nie vir hom en sy leër 'n beloning vir die harde werk wat hy teen haar verrig het nie. Daarom, so sê die Heer, die Here, ‘Kyk, Ek gaan Egipteland vir Nebukadresar, die koning van Babilonië, gee. Hy sal die rykdom daarvan wegdra. Die oorlogsbuit wat hy daar roof en buitmaak, sal 'n beloning wees vir sy leër. As sy vergoeding waarvoor hy gewerk het, gee Ek vir hom Egipteland, want hulle het dit vir My gedoen.’ Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. “ ‘Op daardie dag sal Ek vir die huis van Israel nuwe krag gee, en jou mond sal Ek weer oopmaak om tussen hulle te praat. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Huil! Helaas, dit is die dag! Ja, naby is die dag; naby is die dag van die Here – 'n dag van wolke; 'n tyd van oordeel oor nasies sal dit wees. 'n Swaard sal teen Egipte kom; daar sal 'n siddering van angs wees in Kus wanneer deurboordes in Egipte val. Hulle sal sy rykdom wegvat en sy fondamente afbreek. “ ‘ “Kus, Put en Lud, al die huurtroepe en Kub, ook mense uit die land van die verbond sal deur die swaard saam met hulle val.” “ ‘ So sê die Here: “Hulle wat Egipte ondersteun, sal val; die krag waarop hy trots is, sal ondergaan. Van Migdol tot by Sewene sal hulle deur die swaard in Egipte val.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “ ‘ “ Hulle sal verlate wees tussen lande wat verlate lê, en sy dorpe sal lê tussen stede wat puinhope is. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek 'n vuur aansteek in Egipte, en al sy helpers gebreek word. “ ‘ “Daardie dag sal boodskappers in skepe van My af uitgaan om Kus, wat vol selfvertroue is, te verskrik. Daar sal 'n siddering van angs by hulle wees op die dag van Egipte; want kyk, dit kom.” “ ‘ So sê my Heer, die Here: “Ek maak 'n einde aan die rykdom van Egipte deur die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië. Hy en sy manskappe saam met hom – die gewelddadigstes van die nasies – word gebring om die land te verwoes. Hulle sal hulle swaarde trek teen Egipte en die land met deurboordes vul. Ek sal die strome van die Nyl droë grond maak, en die land oorlewer in die hand van booswigte. Ek sal die land met alles daarin verwoes deur die hand van vreemdes. Ek, die Here, het gepraat.” “ ‘ So sê my Heer, die Here: “Ek sal die afgodsbeelde vernietig, die nikswerd afgode uit Nof laat verdwyn; en 'n leier uit Egipteland sal daar nie meer wees nie. Ek sal vrees laat posvat in Egipte. Ek sal Patros verlate maak, 'n vuur aansteek in Soan, oordele voltrek in No. Ek sal my woede uitstort oor Sin, die vesting van Egipte. Ek sal die hordes van No uitroei. Ek sal 'n vuur aansteek in Egipte; Sin sal ineenkrimp van angs; No sal oopgeruk word; en Nof – helder oordag is daar teenstanders! Die jongmanne van On en Pi-Beset sal deur die swaard val; die stede self sal in ballingskap gaan. In Tagpanhes sal die dag donker wees wanneer Ek daar die jukke van Egipte breek, en die krag waarop hy trots is, tot 'n einde kom. Die stad self – 'n wolk sal dit oordek, en haar dogters sal in ballingskap gaan. Ek sal oordele in Egipte voltrek, en hulle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ” In die elfde jaar, in die eerste maand, op die sewende dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: “ Mensekind, die arm van die farao, die koning van Egipte, het Ek gebreek. Kyk, dit is nie verbind sodat dit kan genees, nie gespalk sodat dit sterk kan word en 'n swaard kan vashou nie. Daarom, so sê die Heer, die Here, ‘dit is Ek teen die farao, die koning van Egipte! Ek sal sy arms breek, die gesonde een en die gebreekte een. Ek sal sy swaard uit sy hand laat val, en Ek sal die Egiptenare onder die nasies versprei, hulle verstrooi in die lande. Ek sal die koning van Babilonië se arms sterk maak en my swaard in sy hand gee. Maar Ek sal die arms van die farao breek. Dodelik verwond, sal hy kreunend voor hom kerm. Ek sal die koning van Babilonië se arms sterk maak, maar die farao se arms sal slap hang. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my swaard in die hand van die koning van Babilonië gee, en hy dit uitsteek na Egipteland. Ek sal die Egiptenare onder die nasies versprei en hulle verstrooi in die lande. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.’ ” In die elfde jaar op die eerste dag van die derde maand het die woord van die Here tot my gekom: “Mensekind, sê vir die farao, die koning van Egipte, en vir sy hordes, ‘Met wie kan jy vergelyk word in grootte? Kyk, Assirië was 'n seder op die Libanon met mooi takke wat die woud oorskadu; sy hoogte was geweldig, en tussen die wolke sy top. Water het hom laat groei; die •oerwater het hom hoog laat word, dit het sy strome laat vloei rondom die plek waar die seder geplant was. Die oerwater het daarna sy vore uitgestuur na al die bome in die veld. Daarom was hy hoër as al die bome in die veld, en het sy takke baie geword, was sy lote wat hy uitgestoot het, lank van al die water. In sy takke het al die voëls van die hemel nesgemaak, onder sy lote het al die wilde diere kleintjies gekry, en in sy skaduwee het al die verskillende nasies gewoon. Hy was pragtig in sy volle grootte met sy lang, blaarryke takke, want sy wortels was by baie water. Seders in die tuin van God kon hom nie oorskadu nie; sipresse kon met sy takke nie vergelyk word nie, en platane was nie so groot soos sy lote nie. Nie een boom in die tuin van God kon met sy skoonheid vergelyk word nie. Pragtig het Ek hom gemaak, met sy oorvloed blare. Al die bome van Eden in die tuin van God het hom beny. “ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here: “omdat hy so hoog uitgestaan het, en hy sy top tot tussen die wolke gestoot het, en hy hooghartig was oor sy grootte, het Ek hom oorgegee in die hand van 'n maghebber van die nasies. Hy sou beslis teenoor hom optree ooreenkomstig sy goddeloosheid. Ek het hom uitgedryf. Vreemdes, die gewelddadigstes van die nasies, het hom afgekap en hom daar laat lê. Op die berge en in al die valleie het sy blare geval, en gebreek het sy lote in al die stroombeddings van die aarde gelê. Van sy skaduwee af het al die volke van die aarde weggegaan en hom daar laat lê. Op sy omgevalle stam was al die voëls van die hemel tuis, en op sy takke al die wilde diere. Dit het gebeur, sodat al die ander bome by die water nie in hoogte sou uitstaan en hulle toppe tot tussen die wolke sou stoot nie, en sodat geen bome wat water kry op hulle eie, daar staan in hulle hoogheid nie. Hulle is immers almal vir die dood bestem, in die wêreld daar onder tussen gewone mense, by hulle wat afdaal in die put. ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag toe hy afgedaal het na die •doderyk, het Ek 'n rouklag laat opklink: Oor hom het Ek die oerwater toegemaak; Ek het sy strome gestuit; die watermassa is teruggehou. Ek het oor hom die Libanon in swart geklee, en oor hom het al die bome in die veld versmag. Met die geluid van sy val het Ek nasies laat bewe. Dit het gebeur toe Ek hom laat afgaan het na die doderyk, saam met dié wat afdaal in die put. In die wêreld daar onder was daar berusting by al die bome van Eden, die keur en die bestes van die Libanon, almal wat water trek. Ook hulle het saam met hom afgedaal na die doderyk, na dié wat deur die swaard gesneuwel het – hulle, sy hulp, wat in sy skaduwee gesit het tussen die nasies. “ ‘ “Met wie kan jy, Egipte, vergelyk word in eer en grootte onder die bome van Eden? Maar jy sal neergehaal word saam met die bome van Eden, af na die wêreld daar onder. Tussen onbesnedenes sal jy lê, saam met dié wat deur die swaard gesneuwel het. “ ‘ “Dit is die farao en al sy hordes,” is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” In die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die farao, die koning van Egipte, en sê vir hom, ‘Jy was soos 'n jong leeu onder die nasies; jy was soos 'n krokodil in die waters. Jy het in jou riviere ingestorm, jy het die water troebel gemaak met jou pote, jy het hulle strome modderig gemaak. “ ‘So sê my Heer, die Here: “Ek sal my vangnet oor jou gooi in die byeenkoms van baie volke, en hulle sal jou optrek in my sleepnet. Ek sal jou op die grond laat lê, jou in die oop veld weggooi. Ek sal sorg dat al die voëls van die hemel hulle op jou tuismaak; Ek sal die diere van die hele aarde versadig maak van jou. Ek sal jou vleis op die berge neersit. Ek sal die valleie vul met jou oorskiet. Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees van jou. Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig laat skyn nie. Al die ligbronne aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis oor jou land bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Ek sal die harte van baie volke ontstel wanneer Ek jou krygsgevangenes by die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie. Ek sal baie volke oor jou verbyster laat; hulle konings sal onbedaarlik sidder oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle sal die hele tyd bewe, elkeen uit vrees vir sy lewe op die dag van jou val. Ja,” so sê my Heer, die Here, “die swaard van die koning van Babilonië gaan jou bereik. Deur die swaarde van krygsmanne laat Ek jou hordes val; hulle is die gewelddadigstes van nasies, hulle almal. Hulle sal die trots van Egipte geweld aandoen; al sy hordes sal uitgedelg word. Ek sal al sy vee laat verdwyn langs baie water. Die voet van 'n mens sal dit nie weer troebel maak nie; die hoewe van vee sal dit nie troebel maak nie. Dan sal Ek hulle waters helder maak, hulle riviere soos olie laat vloei.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Wanneer Ek die land Egipte 'n woesteny maak, en die land verlate lê van alles wat daarin was, wanneer Ek al die inwoners daarin neervel, sal hulle besef dat Ek die Here is. Dit is 'n treurlied, en hulle sal dit sing, die dogters van die nasies sal dit sing, oor Egipte en al sy hordes sal hulle dit sing.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” In die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: “ Mensekind, weeklaag oor die hordes van Egipte en laat hulle afdaal – ook Egipte en die dogters van magtige nasies – af na die aarde se diepste dele, saam met dié wat in die put afdaal. Sê vir hulle, ‘Wie oortref jy in skoonheid? Gaan af, word neergelê by onbesnedenes!’ “Tussen dié wat deur die swaard gesneuwel het, sal hulle val. 'n Swaard is gegee – sleep Egipte en al sy hordes weg! Die magtigste krygshelde sal midde-in die •doderyk oor hom sê, oor hom saam met sy helpers, ‘Hulle het afgedaal; die onbesnedenes lê daar, deurboor met die swaard.’ “Daar is Assirië en sy hele strydmag – rondom hom is hulle grafte, almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard – Assirië, wie se grafte geplaas is op die uithoeke van die put. Sy strydmag is rondom sy graf – almal gesneuweldes, geval deur die swaard, hulle wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes. “Daar is Elam, met al sy hordes rondom sy graf – almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard, wat as onbesnedenes afgegaan het na die aarde se diepste dele, wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal. Tussen gesneuweldes het hulle 'n lêplek vir Elam ingerig by al sy hordes. Hulle is rondom sy graf, almal onbesnedenes, deurboor met die swaard; want hulle het hulle skrikbewind gevoer in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal; tussen gesneuweldes is hulle neergelê. “Daar is Meseg-Tubal en al sy hordes rondom sy graf – almal onbesnedenes, is hulle deurboor met die swaard; want hulle het 'n skrikbewind gevoer in die land van die lewendes. Hulle lê nie by die krygshelde, die gevallenes uit die onbesnedenes nie, hulle wat afgedaal het in die doderyk met hulle oorlogswapens, hulle wie se swaarde onder hulle koppe geplaas is. Hulle sondeskuld sit aan hulle gebeente, want hulle was die verskrikking van krygshelde in die land van die lewendes. “En jy, farao, tussen onbesnedenes sal jy gebreek word, en lê by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Daar is Edom, sy konings en al sy leiers hulle wat ondanks hulle magtige dade neergelê is by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Ook hulle lê by die onbesnedenes, saam met dié wat in die put afdaal. Daar is die stamhoofde uit die noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs, wat afgedaal het saam met die gesneuweldes; ondanks hulle skrikbewind van kragtige dade, staan hulle beskaamd. As onbesnedenes lê hulle by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal. “Die farao sal hulle sien en dan berusting vind oor al sy hordes wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en sy hele leër.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Ja, Ek het sy verskrikking toegelaat in die land van die lewendes, maar hy word neergelê tussen onbesnedenes, by dié wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en al sy hordes.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle, ‘Wanneer Ek 'n swaard oor 'n land bring, en die volk van die land neem iemand uit hulle geledere en stel hom vir hulle as 'n wag aan, en hy sien die swaard kom oor die land, hy blaas op die •ramshoring en waarsku die mense, en iemand wat luister, hoor die geluid van die ramshoring, maar hy laat hom nie waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg – sy bloed sal op sy eie kop wees. Die geluid van die ramshoring het hy gehoor, maar hy het hom nie laat waarsku nie; sy bloed is op hom. As hy hom laat waarsku het, sou hy sy lewe gered het. “ ‘Maar as die wag die swaard sien kom en hy blaas nie die ramshoring nie, en die volk word nie gewaarsku nie, en 'n swaard kom en neem 'n persoon uit hulle weg – hy is dan oor sy sondeskuld weggeneem; sy bloed sal Ek egter van die hand van die wag eis.’ “Jy, mensekind, as 'n wag het Ek jou aangestel oor die huis van Israel. Jy sal uit my mond die woorde hoor, en dan moet jy hulle van my kant af waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê, ‘Goddelose mens, jy gaan beslis sterf,’ en jy praat nie om die goddelose teen sy pad te waarsku nie – hy, die goddelose, sal dan oor sy sondeskuld sterf; sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. As jy egter 'n goddelose waarsku teen sy verkeerde pad, om daarvan terug te draai, en hy draai nie terug van sy pad nie – hy sal deur sy sondeskuld sterf; maar jy, jou eie lewe het jy dan gered. “Jy, mensekind, sê vir die huis van Israel, ‘Dit is wat julle sê: “Omdat ons oortredings en ons sonde op ons druk, en ons daarvan wegteer, hoe kan ons bly leef?” ’ Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef, is die uitspraak van my Heer, die Here: “Ek vind geen vreugde in die dood van die goddelose nie, maar wel vreugde daarin dat 'n goddelose terugkeer van sy pad, en leef. Keer terug, keer terug van julle bose paaie! Waarom moet julle sterf, huis van Israel?” ’ En jy, mensekind, sê vir die mense van jou volk, ‘Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie, en die goddeloosheid van die goddelose – daardeur sal hy nie tot 'n val kom op die dag wanneer hy hom bekeer van sy goddeloosheid nie. Ja, die regverdige, hy sal nie deur sy geregtigheid kan bly leef op die dag wanneer hy sondig nie.’ Wanneer Ek vir die regverdige sê hy sal beslis bly leef, maar hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg – geen van sy regverdige optrede sal in herinnering geroep word nie; deur die onreg wat hy gedoen het, daardeur sal hy sterf. En wanneer Ek vir die goddelose sê hy sal beslis sterf, maar hy bekeer hom van sy sonde, en hy doen wat reg en billik is – 'n pand gee hy, die goddelose, terug, wat geroof is, vergoed hy, volgens die vaste voorskrifte wat die lewe gee, tree hy op, en hy doen geen onreg nie – sal hy beslis bly leef; hy sal nie sterf nie. Geeneen van die sondes wat hy gedoen het, sal tot sy nadeel in herinnering geroep word nie. Wat reg en billik is, het hy gedoen; hy sal beslis bly leef. “Die mense van jou volk sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Maar húlle optrede is onaanvaarbaar! Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daardeur sterf. En wanneer die goddelose afwyk van sy goddeloosheid en doen wat reg en billik is, as gevolg daarvan sal hy leef. Julle sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Volgens elkeen se optrede sal Ek julle oordeel, huis van Israel. ” In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand, op die vyfde van die maand, het iemand wat uit Jerusalem ontvlug het, by my aangekom en gesê: “Die stad is verslaan!” Die hand van die Here was op my, die aand voor die een wat ontvlug het, daar opgedaag het; en Hy het my mond oopgemaak toe die man die oggend by my aankom. Hy het my mond oopgemaak en ek was nie meer stom nie. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, dié wat op daardie puinhope in die land Israel woon, sê, ‘Abraham was net een, en hy het die land in besit geneem. Ons is baie, en aan ons is die land gegee as eiendom.’ Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Julle eet vleis met die bloed nog daarin; julle kyk op na julle afgodsbeelde, en julle vergiet bloed. Sal julle die land besit? Julle het op julle swaarde staatgemaak; julle het afstootlike dinge gedoen en julle het mekaar se vroue verontreinig. Sal julle die land besit?” ’ So moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “So seker as wat Ek leef, hulle wat by die puinhope is, deur die swaard sal hulle val; hy wat in die oop veld is, vir die roofdiere gee Ek hom, sodat hulle hom opvreet; hulle wat in bergvestings en grotte is, deur pessiekte sal hulle sterf. Ek maak die land 'n woesteny, 'n afgryslike plek; sy trotse krag sal tot 'n einde kom. Die berge van Israel sal verlate wees, sonder verbygangers. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, weens al die afstootlike dade wat hulle gepleeg het.” ’ “En wat jou betref, mensekind, die mense van jou volk praat oor jou met mekaar, langs die mure en by die ingange na die huise. Die een praat met die ander, elkeen met sy volksgenoot, en sê, ‘Kom hoor wat is die woord wat van die Here uitgaan!’ Dan kom hulle in skares by jou aan, en my volk gaan sit voor jou en hulle luister na jou woorde, maar hulle voer dit nie uit nie. Ja, met hulle monde doen hulle hartstogtelik mee, maar hulle harte is net agter hulle onregmatige wins aan. Kyk, jy is vir hulle soos 'n hartstogtelike lied, 'n mooi klank, soos iemand wat mooi speel op snaarinstrumente: Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie. Wanneer dit egter vervul word – en kyk, dit gaan vervul word – sal hulle besef dat daar 'n profeet in hulle midde was. ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, profeteer teen die herders van Israel. Profeteer en sê vir hulle, vir die herders, ‘So sê my Heer, die Here: “Wee die herders van Israel wat net aan hulleself weiding verskaf! Is dit nie die kleinvee aan wie die herders weiding moet verskaf nie? Die vet eet julle, en met die wol klee julle julleself; die vetstes slag julle, maar die kleinvee laat julle nie wei nie. Dié wat swak is, het julle nie laat sterk word nie, en die siekes het julle nie gesond gemaak nie; dié met gebreekte bene het julle nie verbind nie; dié wat verstrooi is, het julle nie teruggebring nie, en dié wat weggeraak het, het julle nie gesoek nie, maar met mag en geweld het julle oor hulle regeer. Hulle is verstrooi, sonder 'n herder. Hulle het die prooi geword van al die wilde diere. Hulle is verstrooi; my kleinvee dwaal rond op al die berge en op elke hoë heuwel. Oor die hele oppervlakte van die aarde is my kleinvee verstrooi, en niemand sien na hulle om of soek na hulle nie.” “ ‘Daarom, herders, hoor die woord van die Here: “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here: “omdat my kleinvee buit geword het en my kleinvee voedsel is vir al die wilde diere, omdat daar by hulle geen herder was nie, omdat my herders nie vir my kleinvee gesorg het nie, en die herders net aan hulleself weiding verskaf en my kleinvee nie laat wei het nie” – daarom, herders, hoor die woord van die Here. Ja, so sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen die herders! Ek sal my kleinvee van hulle hand eis en 'n einde maak aan hulle herderskap oor kleinvee, sodat die herders nie langer aan hulleself weiding sal verskaf nie. Ek sal my kleinvee uit hulle monde ruk; my kleinvee sal nie meer vir hulle voedsel wees nie.” “ ‘ Ja, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan omsien na my kleinvee en hulle opspoor. Soos 'n herder sy kudde opspoor op die dag wanneer hy tussen die verstrooide kleinvee is, so sal Ek my kleinvee opspoor. Ek sal hulle red uit elke plek waarheen hulle verstrooi is op 'n dag van wolke en diepe duisternis. “ ‘ “Ek sal hulle uitlei tussen die volke, hulle bymekaarmaak uit ander lande en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, by die stroombeddings, en by al die woonplekke in die land. In goeie weiding sal Ek hulle laat wei; op die berghoogtes van Israel sal hulle weiveld wees. Daar sal hulle in goeie weiding gaan lê; geil weiding sal hulle bewei op die berge van Israel. Ek self sal my kleinvee laat wei; Ek self sal hulle laat lê en rus.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “ ‘ “Dié wat wegraak, sal Ek soek; dié wat verstrooi is, sal Ek terugbring; dié met gebreekte bene sal Ek verbind, en die swakkes sal Ek laat sterk word. Maar die vettes en die sterkes sal Ek uitdelg. Ek sal my skape laat wei op die regte manier. “ ‘ “En wat julle betref, my kleinvee,” so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan regter wees tussen skaap en skaap, tussen skaapramme en bokramme. Is dit nie vir julle genoeg dat julle die goeie weiding afwei en dan die res van die weiding vertrap met julle pote, dat julle skoon water drink en dit wat oorbly, dan met julle pote modderig maak nie? Wat my kleinvee betref – hulle moet wei op wat julle vertrap het met julle pote, en hulle moet drink wat julle modderig gemaak het met julle pote. Daarom,” so sê my Heer, die Here, vir hulle: “Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan oordeel tussen die vet skape en die maer skape. Omdat julle al die swakkes met boud en blad wegstoot en met julle horings gaffel totdat julle hulle na buite verdryf het, sal Ek my kleinvee te hulp kom, sodat hulle nie meer buit sal wees nie. Ek sal oordeel tussen skaap en skaap. Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei – my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle 'n herder sal wees. Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienskneg Dawid sal die leier in hulle midde wees. Ek, die Here, het gepraat. “ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit en roofdiere uit die land verwyder. Hulle sal veilig woon in die woestyn en in die ruigtes slaap. Ek sal hulle en die gebied rondom my heuwel tot 'n seën maak. Ek sal die reënbuie op hulle tyd laat val; dit sal reënbuie wees wat seën bring. Die bome van die veld sal hulle vrug lewer, die grond sal sy opbrengs lewer, en hulle sal veilig wees op hulle grond. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek die skeie van hulle juk breek en hulle red uit die hand van dié wat van hulle slawe gemaak het. “ ‘ “Hulle sal nie langer buit wees vir ander nasies nie, en die diere van die veld sal hulle nie opvreet nie. Hulle sal veilig wees, en niemand sal hulle opjaag nie. Ek sal vir hulle gewasse wat aangeprys word, laat opskiet. Hulle sal nie meer van honger beswyk in die land nie, en hulle sal nie meer die vernedering deur die nasies hoef te verduur nie. Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here: “Julle is my kleinvee, die kleinvee van my weiding. Julle is my mense, Ek is julle God.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “Mensekind, draai jou gesig na die berg Seïr en profeteer teen hom; sê vir hom, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, berg Seïr! Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou 'n woesteny, 'n afgryslike plek maak. Jou dorpe sal Ek puinhope maak; en jy, jy sal verlate wees. Dan sal jy besef dat Ek die Here is. Omdat jy 'n ewigdurende vyandskap koester, en jy die Israeliete oorgelewer het aan die snykante van die swaard in die tyd van hulle teenspoed, in die tyd van finale straf, daarom, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “aan bloedskuld sal Ek jou beslis onderwerp, en bloedskuld sal jou agtervolg. Jy het nie 'n weersin gehad in bloedskuld nie, en bloedskuld sal jou agtervolg.” “ ‘ “Ek sal die berg Seïr 'n woesteny, 'n afgryslike plek maak; Ek sal hulle wat daar verbytrek en terugkeer, uitroei. Ek sal sy berge vol van sy gesneuweldes maak. Op jou heuwels, in jou valleie, in al jou stroombeddings – daar sal dié wat gesneuwel het deur die swaard, val. 'n Ewige woesteny maak Ek jou; jou dorpe sal nie bewoon word nie, en julle sal besef dat Ek die Here is. Omdat jy gesê het, ‘Die twee nasies en die twee lande behoort aan my, en ons gaan dit in besit neem,’ – alhoewel die Here daar was – daarom, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “Ek sal optree in ooreenstemming met jou toorn en afguns waarmee jy uit haat teen hulle opgetree het. Ek sal Myself aan hulle bekend maak wanneer Ek jou oordeel. Jy sal besef dat Ek die Here is. Ek het al jou beledigings gehoor wat jy uitgespreek het teen die berge van Israel, deur te sê, ‘Hulle lê verlate – aan ons is hulle as voedsel gegee.’ “ ‘ “Julle het julle groot gehou teen My met al julle gepraat; julle het julle woorde teen My net te veel gemaak. Ek self het dit gehoor.” So sê my Heer, die Here: “Terwyl die hele aarde verheug is, maak Ek van jou 'n woesteny. Soos wat jy vreugde ervaar oor die erfgrond van die huis van Israel omdat dit verlate lê, só sal Ek met jou maak: Jy sal verlate lê, berg van Seïr, ja, die hele Edom. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ” “ En jy, mensekind, profeteer teen die berge van Israel en sê, ‘Berge van Israel, hoor die woord van die Here! So sê my Heer, die Here: “Omdat die vyand oor julle gesê het, ‘Aha!’ en ‘Die eeue-oue offerhoogtes – dit het ons eiendom geword!’ ” ’ daarom, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat, ja, omdat hulle julle aan alle kante verwoes en geteister het, sodat julle die eiendom van die res van die nasies, die onderwerp van skinderstories in alle tale en van lasterpraatjies onder alle volke geword het,” daarom, berge van Israel, luister na die woord van my Heer, die Here! So sê my Heer, die Here vir die berge, die heuwels, die stroombeddings, die valleie, die verwoeste puinhope en die verlate stede wat 'n buit en 'n voorwerp van spot geword het vir die res van die nasies aan alle kante – ja, so sê my Heer, die Here: “Met die vuur van my heilige jaloesie praat Ek teen die res van die nasies en teen die hele Edom, wat met 'n hart vol vreugde en met 'n •siel vol veragting my land vir hulle as eiendom toegeëien het, sodat sy weivelde 'n buit kon wees.” ’ “Daarom, profeteer oor die grondgebied van Israel en sê vir die berge, die heuwels, die stroombeddings en valleie, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, in my heilige jaloesie en in my woede praat Ek, omdat julle die vernedering deur nasies moet verduur.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Ek self het my hand opgehef en gesweer: Wat die nasies rondom julle betref – hulle sal beslis hulle vernedering moet dra; maar julle, berge van Israel, julle sal lote gee en julle sal vrugte dra vir my volk Israel, want hulle koms is naby. Ja, kyk, Ek is by julle, berge. Ek sal My na julle draai, en julle sal bewerk en beplant word. Ek sal mense op julle talryk maak – dit sal die hele huis van Israel wees, hulle almal. Die dorpe sal bewoon word, en die puinhope sal herbou word. Ek sal mense en vee op julle, berge van Israel, talryk maak; hulle sal vermeerder en vrugbaar wees. Ek sal sorg dat julle bewoon word soos in julle vroeëre tye, en aan julle goed doen, meer as aan die begin. Dan sal julle besef dat ek die Here is. Ek sal mense, my volk Israel, op julle laat loop, en hulle sal julle in besit neem, en julle sal hulle erfenis wees. Julle sal hulle nie weer kinderloos maak nie.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat hulle vir julle sê, ‘Land, jy verslind mense, en jy het jou nasie telkens kinderloos gemaak’, daarom, mense sal jy nie weer verslind nie en jou nasie sal jy nie weer kinderloos maak nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Ek sal jou nie weer die vernedering deur die nasies laat hoor nie; en die bespotting deur volke sal jy nie meer verduur nie. Jou nasie sal jy nie weer laat struikel nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, terwyl die huis van Israel op hulle grond gewoon het, het hulle dit verontreinig met hulle optrede en hulle dade. Soos onreinheid tydens menstruasie, was hulle optrede voor My. Ek het my woede oor hulle uitgestort oor die bloed wat hulle in die land gestort het en oor die afgodsbeelde waarmee hulle dit besoedel het. Ek het hulle onder die nasies versprei, hulle in die lande verstrooi. In ooreenstemming met hulle optrede en hulle dade het Ek hulle geoordeel. Toe hulle aankom by die nasies waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig, deurdat daar van hulle gesê is, ‘Dit is die Here se volk hierdie, maar uit sy land moes hulle padgee.’ Ek was begaan oor my heilige Naam, wat die huis van Israel so ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Nie ter wille van julle doen Ek dit nie, huis van Israel, maar slegs ter wille van my heilige Naam, wat julle ontheilig het onder die nasies waarheen julle gegaan het. Ek sal my groot Naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het. Die nasies sal besef dat Ek die Here is,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “wanneer Ek Myself deur julle as die Heilige betoon voor hulle oë. Ek sal julle uit die nasies neem, en julle bymekaarmaak uit al die lande. Ek sal julle na julle grond bring. Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. Ek sal julle verlos van al julle onreinheid. Ek sal na die koring roep en dit oorvloedig maak; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. Ek sal die vrugte van die bome en die opbrengs van die landerye oorvloedig maak, sodat julle nie meer die bespotting oor hongersnood deur die nasies hoef te verduur nie. Julle sal terugdink aan julle bose optrede, aan julle dade wat nie goed was nie. Dan sal julle walg van julleself oor julle sondeskuld, oor julle afstootlike dade. Nie ter wille van julle doen Ek dit nie,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Dit moet vir julle duidelik wees! Wees verleë en skaam julle oor julle optrede, huis van Israel!” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag wanneer Ek julle reinig van al julle sondeskuld, sal Ek die stede weer laat bewoon; die puinhope sal opgebou word. Die land wat verlate was, sal bewerk word, in plaas daarvan dat dit 'n woesteny is ten aanskoue van elke verbyganger. Hulle sal sê, ‘Hierdie land wat verlate gelê het, het soos die tuin van Eden geword. Die stede wat puinhope was, verlate en platgeslaan, is versterk en word bewoon.’ Die nasies wat rondom julle oorgebly het, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die platgeslane stede opgebou, die verlate land beplant het. Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Ook nog dit sal Ek die huis van Israel toelaat om van My te vra dat Ek dit vir hulle doen: Ek sal hulle vermeerder; soos kleinvee sal die mense wees. Soos gewyde kleinvee, soos die kleinvee by Jerusalem in feestye, so sal die stede wees wat in puin lê – vol kuddes van mense. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ” Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog! Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” ’ ” Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was 'n geluid net toe ek profeteer – 'n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie. Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.” ’ ” Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – 'n buitengewone groot leër! Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’ Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here. Die woord van die Here het tot my gekom: “ En jy, mensekind, neem 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Juda en vir die Israeliete verbonde aan hom.’ Neem dan nog 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Josef – dit is die hout van Efraim – en die hele huis van Israel verbonde aan hom.’ Sit hulle teen mekaar as een stuk hout. Hulle moet 'n eenheid wees in jou hand. Wanneer die mense van jou volk dan vir jou vra, ‘Sal jy nie vir ons vertel wat hierdie handeling van jou beteken nie?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan die hout van Josef neem, die hout wat in die hand is van Efraim, en die stamme van Israel verbonde aan hom, en Ek gaan hulle by hom, by die hout van Juda, plaas, en hulle een stuk hout maak. Dan sal hulle een wees in my hand.” ’ Die stukke hout waarop jy skryf, moet voor hulle oë in jou hand wees, en dan moet jy vir hulle verklaar, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan die Israeliete wegneem tussen die nasies waarheen hulle gegaan het. Ek sal hulle byeenbring van oraloor en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle een nasie maak in die land op die berge van Israel, en een koning sal oor hulle almal koning wees. Hulle sal nie meer twee nasies wees, en hulle sal nooit weer verdeel wees in twee koninkryke nie. Hulle sal hulleself nie meer verontreinig met hulle afgodsbeelde en hulle verfoeilike afgode, ja, met al hulle oortredings nie. Ek sal hulle verlos van al hulle afvalligheid waardeur hulle gesondig het. Ek sal hulle reinig; dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. My dienskneg Dawid sal koning wees oor hulle, en daar sal een herder vir hulle almal wees. My bepalings sal hulle volg, en my vaste voorskrifte sal hulle nakom en dit uitvoer. Hulle sal woon in die land wat Ek aan my dienskneg, aan Jakob, gegee het – die land waarin julle voorouers gewoon het. Hulle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en kleinkinders, vir altyd; en Dawid, my dienskneg, sal vir hulle 'n leier wees vir altyd. “ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit – dit sal 'n ewige verbond met hulle wees. Ek sal hulle vestig en hulle baie laat word, en Ek sal my heiligdom tussen hulle vestig, vir altyd. My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir my 'n volk wees. Die nasies sal besef dat Ek die Here is wat Israel heilig, wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle sal wees.” ’ ” Die woord van die Here het tot my gekom: “ Mensekind, draai jou gesig na Gog van die land Magog, die hoofleier van Meseg en Tubal, profeteer teen hom en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Gog, hoofleier van Meseg en Tubal! Ek sal jou laat omdraai, Ek sal hake deur jou kake steek en jou op 'n veldtog laat uittrek, saam met jou hele leërmag – perde en ruiters, almal weelderig geklee, 'n groot menigte met grootskilde en kleinskilde, almal met swaarde gewapen. Persië, Kus en Put is saam met hulle, almal met skild en helm. Gomer en al sy troepe, Bet-Togarma in die afgeleë noorde, met al sy troepe – baie volke is saam met jou. Maak gereed en hou jou gereed, jy en die hele skare wat by jou aangesluit het. Tree vir hulle op as 'n wag. Ná 'n lang tyd sal jy opgeroep word; aan die einde van jare sal jy gaan na 'n land wat weer herstel het ná die swaard, 'n land waarvan die mense byeengebring is uit baie volke op die berge van Israel, die berge wat langdurig in puin gelê het. Hulle is uit die volke uitgelei, en hulle almal woon veilig. Jy sal optrek; soos 'n stormwind wat losbreek, sal jy aankom, soos 'n wolkmassa om die land te bedek sal jy wees – jy en al jou troepe en die baie volke by jou.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Daardie dag sal daar dinge in jou hart opkom; en jy sal 'n bose plan bedink en sê, ‘Ek sal optrek teen 'n land wat oop lê; ek sal toesak op hulle wat onverstoord en veilig woon, op almal wat sonder stadsmuur woon, en selfs nie 'n sluitbalk of poortdeure het nie.’ Jou doel sal wees om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat bewoon word, teen 'n volk wat byeengebring is uit die nasies, wat kleinvee en besittings verkry het, wat woon in die middel van die aarde. Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis, met al sy jong leeus, sal vir jou vra, ‘Is dit om oorlogsbuit te roof dat jy gekom het? Is dit om buit te maak dat jy jou hordes byeengebring het – om silwer en goud weg te dra, om kleinvee en besittings te vat, om 'n groot oorlogsbuit te roof?’ ” ’ “Daarom, profeteer, mensekind, en sê vir Gog, ‘So sê my Heer, die Here: “Sal jy dit nie besef, daardie dag wanneer my volk Israel veilig woon nie? Jy sal uit jou woonplek kom, uit die afgeleë noorde, jy en baie volke saam met jou, almal ruiters te perd, 'n groot menigte, 'n ontsaglike leër. Jy sal optrek teen my volk Israel, soos 'n wolkmassa, om die land te bedek. Aan die einde van die dae sal dit gebeur. Ek sal jou op my land laat toesak, sodat die nasies My kan leer ken wanneer Ek Myself voor hulle oë deur jou, Gog, as die Heilige betoon. ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Is jy die een van wie Ek in vervloë dae gepraat het by monde van my diensknegte, die profete van Israel, wat in daardie tyd jare lank geprofeteer het dat Ek jou teen hulle te staan sal bring? Maar daardie dag, die dag wanneer Gog op die grondgebied van Israel toesak,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal dít gebeur: In my toorn sal my woede opvlam. Met heilige jaloesie, met die vuur van my gramskap, verklaar Ek: Op daardie dag sal daar 'n groot aardbewing wees op die grondgebied van Israel. Vanweë my teenwoordigheid sal die visse in die see, die voëls van die hemel, die diere van die veld, al die diere wat op die grond kruip, en elke mens op aarde bewe. Die berge sal intuimel, die kranse sal ineenstort, en elke stadsmuur sal op die grond val. Ek sal die swaard teen Gog ontbied ter wille van al my berge,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Die een se swaard sal teen die ander gerig wees. Ek sal met hom die saak bereg deur pessiekte en bloedvergieting. Geweldige stortreën, groot haelstene, vuur en swael sal Ek op hom, op sy troepe en op baie volke wat by hom is, laat neerreën. Ek sal Myself groot en heilig betoon en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies. Hulle sal besef dat Ek die Here is.” ’ “En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Gog, hoofleier van Meseg en Tubal! Ek sal jou laat omdraai en jou saamsleep; Ek sal jou laat optrek uit die afgeleë noorde. Ek sal jou bring by die berge van Israel. Dan sal Ek jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou troepe en die volke wat by jou is. Aan die roofvoëls, al die gevleueldes, en aan die diere van die veld, gee Ek jou as voedsel. Op die oop veld sal jy val, want Ek het gepraat.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “ Ek sal vuur slinger in Magog, en onder hulle wat veilig woon in die eilande. Hulle sal besef dat Ek die Here is. My heilige Naam sal Ek bekend maak midde-in my volk Israel. Ek sal my heilige Naam nie weer laat ontwy nie. Die nasies sal besef dat Ek die Here is, heilig in Israel. Kyk, dit kom, dit sal gebeur,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Dit is die dag waarvan Ek gepraat het. “ ‘ “ Die inwoners van die dorpe van Israel sal uitgaan en vuur maak; hulle sal dit met wapens, met klein- en grootskilde, boë en pyle, knuppels en steekspiese aan die brand steek. Hulle sal sewe jaar lank daarmee vuur maak. Hulle sal nie hout uit die veld aandra of in die bosse kap nie, want met die wapens sal hulle vure maak. Hulle sal hulle plunderaars plunder, hulle buitmakers buit. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ “ ‘ “Op daardie dag sal Ek vir Gog 'n plek as graf gee in Israel, in die Vallei van Oberim, oos van die see. Dit sal 'n versperring wees vir verbygangers. Hulle sal Gog en sy hele horde daar begrawe, en die plek Vallei van Hamon-Gog noem. Die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig; dit sal sewe maande duur. Die hele volk van die land sal hulle begrawe, en dit sal die volk tot roem strek op die dag wanneer Ek Myself verheerlik.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Hulle sal gereeld manne afsonder wat die land deurgaan, en verbygangers wat op die grond bly lê het, begrawe om die land te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ondersoek instel. En hulle wat die land deurkruis – wanneer iemand menslike beendere sien lê, sal hy langsaan 'n merkteken oprig, totdat die begrawers dit begrawe het in die Vallei van Hamon-Gog. Die naam van die dorp sal ook Hamona wees. So sal hulle die land reinig.” ’ “En jy, mensekind,” so sê die Heer, die Here: “Sê vir die voëls, vir al die gevleueldes, en vir al die diere van die veld: Kom bymekaar, ja, kom! Kom van oraloor byeen by my slagoffer wat Ek vir julle gaan slag – 'n groot slagoffer op die berge van Israel. Eet vleis en drink bloed! Die vleis van helde sal julle eet en die bloed van die leiers van die aarde sal julle drink – skaapramme, ramlammers, bokramme, bulle, almal vetgemaak in Basan. Julle sal vet eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is van my offers wat Ek vir julle geslag het. Julle moet julle by my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan helde en al die krygsmanne.” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. “Ek sal my heerlikheid onder die nasies toon; al die nasies sal my oordeel sien wat Ek voltrek, en my hand wat Ek op hulle lê. Die huis van Israel sal besef dat Ek die Here hulle God is, van daardie dag af en daarna. Die nasies sal besef dat dit oor hulle sondeskuld is dat die huis van Israel in ballingskap gegaan het omdat hulle aan My ontrou was. Ek het my gesig vir hulle verberg en hulle oorgegee in die hand van hulle teenstanders, en hulle het almal deur die swaard geval. Ooreenkomstig hulle •onreinheid en hulle oortredings het Ek teen hulle opgetree en my gesig vir hulle verberg. Daarom,” so sê die Heer, die Here, “gaan Ek nou die lot van Jakob verander, en My ontferm oor die hele huis van Israel. Ek sal my ywer vir my heilige Naam toon. Hulle sal egter steeds hulle vernedering en al die ontrou wat hulle teen My gepleeg het, moet dra wanneer hulle veilig woon op hulle grond en niemand hulle verskrik nie, wanneer Ek hulle van die volke af terugbring en hulle byeenbring uit die lande van hulle vyande, en Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van baie nasies. Hulle sal besef dat Ek, die Here, hulle God is, wanneer Ek hulle in ballingskap laat wegvoer het na die nasies, en hulle op hulle grond bymekaargebring het, en nie meer enigiemand van hulle daar agtergelaat het nie. Ek sal nie weer my gesig vir hulle verberg nie, want Ek het my Gees op die huis van Israel uitgestort. ” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here. In die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap, aan die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, in die veertiende jaar nadat die stad verslaan is, op presies daardie dag, was die hand van die Here op my, en Hy het my na die stad geneem. In visioene van God het Hy my na die land Israel geneem en my neergesit op 'n baie hoë berg waarop daar aan die suidekant iets soos 'n geboude stad was. Hy het my daarheen geneem, en kyk, daar was 'n man wat gelyk het asof hy van brons was. Daar was 'n toutjie van vlas in sy hand, en ook 'n maatstok. Hy het in die poort gestaan. Die man praat toe met my: “Mensekind, jy moet stip kyk en aandagtig luister, jou aandag rig op alles wat ek jou gaan wys, want jy is hierheen gebring met die doel om dit vir jou te wys. Maak alles wat jy sien, bekend aan die huis van Israel.” Kyk, daar was 'n muur buite reg rondom die •tempel. In die man se hand was die maatstok van ses el – hierdie el is 'n el en 'n handbreedte. Hy het die breedte van die muur gemeet, dit was een maatstok, en die hoogte was ook een maatstok. Hy kom toe by die poort wat oos front, klim met die trappe op, en meet die drumpel van die poort. Dit was een maatstok breed. Die dienskamers vir die wagte was een maatstok lank en een maatstok breed, en tussen die dienskamers was dit vyf el. Die drumpel van die poort aan die binnekant van die poort se portaal was ook een maatstok. Toe meet hy die portaal van die poort aan die binnekant. Dit was agt el lank, en die afskortingsmure was twee el dik. Die portaal van die poort was aan die tempel se kant. Wat betref die dienskamers in die poort wat oos front, was daar drie aan die een en drie aan die ander kant; die drie van hulle aan elke kant het dieselfde afmetings gehad. Die afskortingsmure aan elke kant het dieselfde afmetings gehad. Toe meet hy die breedte van die opening na die poort: dit was tien el. Die breedte van die poort self was dertien el. Daar was 'n keermuurtjie van een el hoog voor die dienskamers, ook een van een el aan die teenoorgestelde kant. Die dienskamers was ses el diep, ook ses el diep aan die teenoorgestelde kant. Hy meet toe die poort van die dakhoek van een dienskamer tot by die dakhoek van 'n ander: dit was vyf-en-twintig el. Die ingange was regoor mekaar. Toe doen hy dieselfde met die afskortingsmure: dit was sestig el tot by die afskortingsmuur na die voorhof – die poort reg rondom. Van die voorkant van die poort af waar mens ingaan, tot aan die voorkant van die portaal van die poort aan die binnekant was dit vyftig el. Daar was vensters met luike in die dienskamers en hulle afskortingsmure aan die binnekant van die poort, reg rondom. So was dit ook in die portaal – die vensters was reg rondom aan die binnekant. Op die afskortingsmure was daar palmette. Die man het my toe na die buitenste voorhof geneem. Kyk, daar was vertrekke, en 'n plaveisel was reg rondom in die voorhof aangebring. Daar was dertig vertrekke langs die plaveisel. Die plaveisel was langs die kante van die poortgeboue en het ooreengekom met die lengte van die poortgeboue. Dit was die laer plaveisel. Hy meet toe die afstand vanaf die voorkant van die laer liggende poort tot aan die buiterand van die binneste poort: Dit was honderd el. Dit was die oostekant. Nou volg die noordekant. Wat die poort betref wat noord front, aan die buitenste voorhof – hy het die lengte en breedte gemeet. Die drie dienskamers aan albei kante, die afskortingsmure en sy portaal het dieselfde afmetings gehad as dié van die eerste poort: vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Sy vensters, sy portaal en die palmette het dieselfde afmetings gehad as dié van die poort wat oos front. Met sewe trappe kon mens daarheen opklim, en sy portaal was aan die voorkant. 'n Poort na die binneste voorhof was geleë teenoor die poort aan die noordekant en so ook aan die oostekant. Hy het van poort tot poort gemeet – honderd el. Hy laat my toe na die suidekant gaan, en kyk, daar was 'n poort aan die suidekant. Hy het die afskortingsmure en die portaal daarvan gemeet; dit was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad, soos die ander vensters. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Sewe trappe het toegang daartoe verleen, en die portaal was aan die voorkant. Dit het palmette gehad, een aan hierdie en een aan daardie kant van die afskortingsmure. Die binneste voorhof het 'n poort na die suide gehad. Hy het van poort tot poort na die suide gemeet; dit was honderd el. Toe neem hy my na die binneste voorhof, deur die suidpoort. Hy het die suidpoort gemeet: dit was soos die ander afmetings. Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Daar was portale reg rondom, vyf-en-twintig el lank en vyf el breed. Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure. Sy buitetrap het agt trappe gehad. Toe neem hy my na die binneste voorhof aan die oostekant. Hy het die poort gemeet; dit was soos die ander afmetings. Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Sy buitetrap het agt trappe gehad. Toe neem hy my na die noordpoort. Hy het gemeet, en dit was soos die ander afmetings – die dienskamers, afskortingsmure en die portaal. Dit het vensters reg rondom gehad. Dit was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Die portaal daarvan was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Die buitetrap daarvan het agt trappe gehad. Daar was 'n vertrek waarvan die toegang by die buitenste afskortingsmure van die poort was. Daar het hulle die •brandoffers afgespoel. In die portaal van die poort was daar twee tafels aan hierdie en aan daardie kant om die brandoffers, •reinigingsoffers en •hersteloffers op te slag. Daar langsaan, aan die buitekant, waar 'n mens opklim na die ingang van die noordpoort, was daar twee tafels. En langsaan, aan die ander kant van die poort se portaal, was daar ook twee tafels, altesaam vier tafels aan die een kant en vier tafels aan die ander kant langs die poort – agt tafels waarop geslag kon word. Daar was ook vier tafels van gekapte klip vir die brandoffers, elkeen een en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een el hoog. Daarop is die gereedskap neergesit waarmee die brandoffers en ander offers geslag is. Dubbelhake van een handbreedte is oral in die gebou aangebring. Op die tafels sou die vleis vir die offers wees. Buite die binneste poort was daar twee vertrekke in die binneste voorhof – een wat suid front, langs die noordpoort, en een wat noord front, langs die suidpoort. Die man praat toe met my: “Hierdie vertrek wat suid front, is vir die priesters wat verpligtinge by die tempel nakom; en die vertrek wat noord front, is vir die priesters wat verpligtinge by die altaar nakom. Hulle is Sadokiete, uit die geslag van Levi, wat mag nader kom na die Here om vir Hom diens te verrig.” Hy meet toe die voorhof. Dit was vierkantig, honderd el lank en honderd el breed. Die altaar was voor die tempel. Toe neem hy my na die portaal van die tempel, en hy meet die afskortingsmure van die portaal. Dit was vyf el dik aan albei kante. Die breedte van die poort was veertien el, en die sykante van die poort was drie el aan albei kante. Die lengte van die portaal was twintig el, en die breedte elf el. Met tien trappe kon 'n mens daarheen opklim. Daar was pilare by die afskortingsmure, een aan elke kant. Toe neem hy my na die hoofvertrek van die •tempel, en meet die afskortingsmure: Dit was ses el dik aan die een kant en ses el dik aan die ander kant. Dit was die breedte van die afskortingsmuur. Die breedte van die ingang was tien el, en die symure van die ingang was vyf el aan albei kante. Toe meet hy die lengte van die hoofvertrek: Dit was veertig el. Die breedte was twintig el. Daarna gaan hy binnetoe en meet die afskortingsmuur by die ingang: Dit was twee el dik. Die ingang was ses el, en die symure van die ingang was sewe el. Toe meet hy die lengte van die vertrek: Dit was twintig el. Die breedte, aan die voorkant van die hoofvertrek, was ook twintig el. Hy het vir my gesê: “Dit is die •Allerheiligste.” Hy meet toe die muur van die tempel: Dit was ses el dik. Die breedte van die sykamers aan alle kante reg rondom die tempel was vier el. Die sykamers was sykamer op sykamer in drie verdiepings, dertig van hulle. Reg rondom het die buitemuur van die tempel trapsgewys vernou sodat daar steunpunte vir die sykamers kon wees en die steunpunte nie in die muur van die tempel sou wees nie. Daar was rondom, hoër en hoër, meer ruimte vir die sykamers; want die tempel is, tot heel bo, rondom deur sykamers omring. Aan die buitekant was die tempel dus net so breed aan die bokant as aan die onderkant. 'n Mens kon deur die middelste verdieping na die boonste verdieping opgaan. Ek het gesien dat daar reg rondom die tempel 'n opgeboude terras was wat as onderbou gedien het vir die sykamers. Dit was 'n volle maatstok hoog, ses el, tot by die basis van die sykamers. Die buitemuur van die sykamers se dikte was vyf el. Die deel wat oopgelaat was tussen die sykamers van die tempel en ander vertrekke, was twintig el breed, al om die tempel. Die ingange na die sykamers was uit die ruimte rondom die tempel – een ingang aan die noordekant en een ingang aan die suidekant. Die dikte van die buitemuur by die ingange was oral vyf el. Die gebou aan die westekant van die tempel was sewentig el lank en negentig el breed, en was teenoor die ruimte waar toegang beperk is; die muur van die gebou was rondom vyf el dik. Daarna meet hy toe die tempel: Dit was honderd el lank. Die ruimte waar toegang beperk is, saam met die gebou en sy mure aan die westekant, was ook honderd el lank. Die breedte van die tempel aan die voorkant, insluitende die ruimte waar toegang beperk is aan die oostekant, was honderd el. Toe meet hy die breedte van die gebou langs die ruimte waar toegang beperk is, dié een aan die agterkant daarvan, saam met die lyste daarvan aan albei kante: Dit was honderd el. Die hoofvertrek, die binnevertrek en die portale by die voorhof, die drumpels, die vensters met luike en met rame aan drie kante, uitgesonderd die vensterbank, was oral met hout beklee. Van die vloer af tot by die vensters was dit bedek. Tot aan die bokant van die ingange na die •tempel, aan die binne- en buitekant, en rondom op elke muur binne en buite, was daar stroke afgemeet waarop gerubs en palmette aangebring was. Daar was elke keer 'n palmet tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad – die gesig van 'n mens, gerig na die palmet aan die een kant, en die gesig van 'n leeu, gerig na die palmet aan die ander kant. Dit was aangebring aan al die tempelmure reg rondom. Van die vloer tot aan die bokant van die ingange was daar gerubs en palmette. Die muur van die hoofvertrek het 'n vierkantige kosyn gehad. Voor die heiligdom was daar iets wat gelyk het soos 'n altaar van hout – drie el hoog, met 'n lengte van twee el; dit het hoeke gehad, en die voetstuk en sykante was van hout. Die man sê toe vir my: “Dit is die tafel wat voor die Here is.” Die hoofvertrek en die heiligdom het dubbele deure gehad. Die deure het twee vleuels gehad, twee vleuels wat oopswaai, twee vir elke deur. Op die deure van die hoofvertrek was daar gerubs en palmette aangebring, soos op die mure. 'n Afskorting van hout was voor die portaal aan die buitekant. Daar was vensters met luike en palmette aan albei kante van die symure van die portaal, ook aan die sykamers van die tempel en die afskortings. Die man het my in 'n noordelike rigting uitgelei na die buitenste voorhof, en my geneem na die vertrekke teenoor die ruimte met beperkte toegang en teenoor die gebou aan die noordekant. Aan die voorkant by die ingang aan die noordekant, was die kamers honderd el lank en vyftig el breed. Die kamers was langs 'n gang van twintig el breed wat deel is van die binneste voorhof, en teenoor die plaveisel wat deel is van die buitenste voorhof, en was gebou met 'n buitemuur wat driemaal trapsgewys vernou. Aan die voorkant van die vertrekke was daar 'n gang aan die binnekant; dit was tien el breed en honderd el lank, met die ingange aan die noordekant. Die boonste vertrekke was smaller, want die vernouende vlakke het van hulle plek opgeneem, meer as die onderste en middelste vlakke van die gebou. Ja, die kamers was in drie verdiepings gebou, en het nie pilare gehad soos dié by die voorhowe nie. Gesien vanaf grondvlak was die muur bo die onderste kamers teruggeskuif, en weer bo die middelste kamers. Daar was 'n klipmuur wat aan die buitekant ewewydig met die vertrekke aan hulle voorkant in die rigting van die buitenste voorhof geloop het; dit was vyftig el lank. Terwyl die breedte van die vertrekke aan die buitenste voorhof vyftig el was, kyk, langs die hoofvertrek was die vertrekke honderd el lank. Op die grondvlak van daardie ander vertrekke was die ingang aan die oostekant wanneer 'n mens daar wou ingaan uit die buitenste voorhof by die begin van die klipmuur in die voorhof. Aan die suidekant, al langs die ruimte met beperkte toegang en die gebou, was daar ook vertrekke, met 'n gang voor hulle. Dit het gelyk soos die vertrekke aan die noordekant – met dieselfde lengte en breedte. Ook alle uitgange, die uitleg en ingange was dieselfde. So was ook die ingange na die vertrekke aan die suidekant dieselfde. Daar was 'n ingang by die begin van die gang wanneer iemand daar wou ingaan – soos die gang langs die skermmuur wat oos strek. Die man het vir my gesê: “Die vertrekke aan die noordekant en die vertrekke aan die suidekant, wat langs die ruimte met beperkte toegang lê, is heilige vertrekke, waar die priesters wat na die Here mag nader kom, die •besonder heilige gawes moet eet. Daar moet hulle die besonder heilige gawes neersit – die •graanoffers, •reinigingsoffers en •hersteloffers – want die plek is heilig. Wanneer die priesters ingegaan het, mag hulle nie uit die heiligdom direk na die buitenste voorhof gaan nie, maar moet daar in die kamers eers hulle klere waarin hulle diens gedoen het, neersit, want dit is heilig. Hulle moet ander klere aantrek en dan nader gaan na waar die volk is.” Toe die man klaar was met die opmeet van die •tempel binne, het hy my uitgelei deur die poort wat oos front, en die muur buite-om gemeet. Hy het die oostekant gemeet met die maatstok: Dit was vyfhonderd el lank met die maatstok. Hy het omgegaan en die noordekant gemeet: Dit was vyfhonderd el lank met die maatstok. Hy het omgegaan, en die suidekant gemeet: Dit was vyfhonderd el lank met die maatstok. Toe het hy omgegaan na die westekant; hy het vyfhonderd el met die maatstok gemeet. Aan al vier kante het hy die tempelterrein gemeet. Dit was vyfhonderd el lank en vyfhonderd el breed, en het 'n muur reg rondom gehad om skeiding te maak tussen wat heilig is en nie heilig is nie. Die man neem my toe na die poort, die poort wat oos front. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het uit die ooste gekom! Die geluid daarvan was soos die geluid van baie water, en die aarde het gestraal van sy heerlikheid. Die visioen wat ek gesien het, was soos die visioen wat ek gesien het met sy koms om die stad te verwoes. Ja, die visioene was soos die visioen wat ek gesien het by die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. Die heerlikheid van die Here het na die •tempel gekom deur die poort wat oos front. 'n Gees het my opgelig en my na die binneste voorhof geneem. Kyk, die heerlikheid van die Here het die tempel gevul! Terwyl die man langs my staan, het ek iemand met my hoor praat uit die tempel. Hy het vir my gesê: “Mensekind, dit is die plek van my troon, die plek vir my voetsole, waar Ek tussen die Israeliete sal woon, vir altyd. Die huis van Israel, hulle en hulle konings, sal nie weer my heilige Naam verontreinig met hulle hoerery, met die grafsuile van hulle konings wanneer hulle sterf nie. Toe hulle hulle drumpel teen my drumpel geplaas het, en hulle deurkosyn langs my deurkosyn, en daar net 'n muur tussen My en hulle was, het hulle my heilige Naam verontreinig met die afstootlike dade wat hulle gedoen het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het. Nou sal hulle hulle hoerery en die grafsuile van hulle konings ver van My af verwyder; en Ek sal tussen hulle woon, vir altyd. “ Jy, mensekind, moet vir die huis van Israel die tempel beskryf, sodat hulle beskaamd kan staan oor hulle sondeskuld. Laat hulle 'n model daarvan uitmeet. As hulle dan beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle vertroud met die sketsplan van die tempel, sy ontwerp, sy uitgange en ingange, al sy sketsplanne, al sy vaste voorskrifte, ja, al sy sketsplanne en al sy wette. Skryf dit voor hulle oë neer, sodat hulle al sy sketsplanne en al sy vaste voorskrifte sal bewaar en uitvoer. “Dit is die wet vir die tempel: Op die kruin van die berg is die hele gebied van die tempel reg rondom besonder heilig. Kyk, dit is die wet vir die tempel.” “Dit is die afmetings van die altaar in el – elke el is 'n el en 'n handbreedte lank. Die voor is een el diep en een el breed, en die rand daarvan al langs die kant is rondom een span. Dit vorm dan die basis van die altaar. Vanaf die voor in die grond tot by die laer lys is dit twee el, en die lys is een el breed; en van hierdie smaller lys tot by die hoër lys is dit vier el. Die breedte van die hoër lys is een el. Die vuurmaakplek is vier el hoog, en uit die vuurmaakplek wys vier horings na bo. Die vuurmaakplek is twaalf el lank en twaalf el breed – vierkantig, gemeet aan sy vier kante. Die hoër lys is veertien el lank en veertien el breed, gemeet aan sy vier kante. Die rand rondom is 'n halwe el, en die voor van die altaar is rondom een el diep. Die trappe front oos.” Die man het vir my gesê: “Mensekind, so sê my Heer, die Here, ‘Dit is die vaste voorskrifte vir die altaar, vir die dag wanneer dit opgerig is om •brandoffers daarop te bring en bloed daarteen te sprinkel: Gee vir die priesters, die Leviete uit die nageslag van Sadok wat na My mag nader kom om My te dien, 'n jong bul as •reinigingsoffer.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ‘Neem van die bloed en smeer dit aan die vier horings, aan die vier hoeke van die lys en aan die rand rondom, en reinig die altaar deur daarvoor versoening te doen. Neem dan die bul vir die reinigingsoffer en verbrand hom in die aangewese deel van die tempel buite die heiligdom. Op die tweede dag moet jy 'n bokram sonder gebrek as reinigingsoffer bring, en hulle moet die altaar daarmee reinig, soos hulle dit met die bul gereinig het. Wanneer jy klaar is met die reiniging, moet jy 'n jong bul sonder gebrek en 'n skaapram sonder gebrek uit die kleinvee naderbring. Bring hulle nader voor die Here. Die priesters moet sout op hulle gooi en hulle as brandoffer vir die Here offer. Sewe dae lank moet jy elke dag 'n bokram offer as reinigingsoffer; en hulle moet ook 'n jong bul en 'n skaapram uit die kleinvee offer, diere sonder gebrek. Sewe dae lank moet hulle versoening doen vir die altaar en dit dan rein verklaar. So moet hulle dit wy. Nadat die dae verloop het, moet die priesters vanaf die agtste dag en daarna julle brandoffers en •maaltydoffers op die altaar bring, en Ek sal julle aanvaar.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ” Die man neem my toe terug na die buitenste poort van die heiligdom, die een wat oos front. Dit was egter toe. Die Here sê toe vir my: “Hierdie poort moet toe bly; dit mag nie oopgemaak word nie. Niemand mag daardeur ingaan nie, want die Here, die God van Israel, het daardeur ingegaan. Dit moet toe bly. Die leier mag, terwyl hy leier is, in die poort sit om voor die Here brood te eet. Van die portaal van die poort se kant moet hy ingaan, en weer aan daardie kant uitgaan.” Toe neem die man my deur die noordpoort na die voorkant van die •tempel. Ek sien toe, kyk, die heerlikheid van die Here vul die huis van die Here, en ek het neergeval met my gesig teen die grond. Die Here sê toe vir my: “Mensekind, gee aandag! Kyk stip en luister aandagtig na alles wat Ek vir jou gaan sê oor al die vaste voorskrifte vir die huis van die Here en oor al sy wette. Let noukeurig op die ingang na die tempel en al die uitgange van die heiligdom. Sê vir die opstandiges, vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is nou genoeg van al julle afstootlikhede, huis van Israel! Toe julle vreemdes, onbesnede van hart en liggaam, ingeneem het om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig, toe julle self my voedsel, vet en bloed, nadergebring het, het julle my verbond verbreek, bo en behalwe al julle afstootlike dade. Julle het nie die verpligting nagekom in verband met wat vir My heilig is nie, maar het ander aangestel om namens julle die verpligting teenoor My in my heiligdom na te kom.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Geen vreemde, onbesnede van hart en liggaam, mag in my heiligdom kom nie, nie een van die vreemdes wat tussen die Israeliete woon nie – slegs die Leviete mag daar inkom, hulle wat ver van My was toe Israel afgedwaal het, van My afgedwaal het agter hulle afgodsbeelde aan. Die Leviete sal egter hulle sondeskuld moet dra: In my heiligdom sal hulle dienaars moet wees – in bevel van die poorte van die tempel – en dienaars in die tempel. Dit is hulle wat die •brandoffers en die •offers vir die volk sal moet slag, en dit is hulle wat vir die volk gereed sal moet staan om hulle te dien. Omdat hulle vir die volk diens gedoen het voor hulle afgodsbeelde, en so vir die huis van Israel 'n struikelblok geword het wat sondeskuld meebring, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef en gesweer: Hulle sal hulle sondeskuld moet dra.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Hulle mag nie nader kom na My toe om as priesters vir My op te tree nie, of naby enigiets kom wat vir My heilig is, naby die •besonder heilige gawes nie. Hulle moet hulle vernedering dra, en die gevolge van die afstootlike dade wat hulle gedoen het. Ek sal hulle aanstel as die mense wat die verpligtinge in die tempel moet nakom – al die arbeid, ja, alles wat daar gedoen moet word.” ’ ” “ ‘ “Maar die Levitiese priesters, die nageslag van Sadok, wat die verpligtinge in my heiligdom nagekom het toe die Israeliete van My afgedwaal het, net hulle mag nader kom na My toe om My te dien; hulle mag in my diens staan om vir My vet en bloed aan te bied.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “Net hulle mag in my heiligdom ingaan, en net hulle mag naby my tafel kom om My te dien. Hulle sal die verpligtinge teenoor My nakom. Wanneer hulle deur die poorte van die binneste voorhof gaan, moet hulle linneklere aanhê; hulle mag nie wol dra terwyl hulle diens doen binne die poorte van die binneste voorhof en binne die •tempel nie. Hulle moet linnekopdoeke op hulle koppe hê, en daar moet linnebroeke om hulle heupe wees. Hulle mag nie iets aanhê wat hulle laat sweet nie. Wanneer hulle uitgaan na die buitenste voorhof, na die volk, moet hulle die klere waarin hulle diens gedoen het, uittrek, en dit neersit in die heilige vertrekke. Hulle moet dan ander klere aantrek, sodat hulle nie die volk heilig maak met hulle klere nie. “ ‘ “ Hulle koppe mag hulle nie kaal skeer nie, en ook nie hulle hare laat loshang nie; hulle moet hulle hare netjies knip. Geen priester mag wyn drink wanneer hy die binneste voorhof binnegaan nie. Weduwees of geskeide vroue mag hulle nie vir hulle as vroue neem nie, slegs jongmeisies uit die nageslag van die huis van Israel, en 'n weduwee wat die weduwee van 'n priester is, mag hulle as vroue neem. Hulle moet my volk leer wat die verskil is tussen heilig en onheilig; en die verskil tussen rein en onrein moet hulle aan hulle bekend maak. “ ‘ “ By 'n geskil is dit hulle wat moet gereedstaan om 'n beslissing te gee. Volgens my beslissings moet hulle die saak besleg. My wette en vaste voorskrifte moet hulle by al my feeste nakom, en my Sabbatte heilig hou. “ ‘ “ By 'n dooie mens mag 'n priester nie kom en sodoende onrein word nie. Slegs in die geval van 'n vader of moeder, seun of dogter, broer of suster wat nie 'n man gehad het nie, mag hulle hulleself wel verontreinig. Ná sy reiniging moet sewe dae afgetel word. Die dag wanneer hy dan die heiligdom binnegaan, na die binneste voorhof, om in die heiligdom diens te doen, moet hy sy •reinigingsoffer bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ “ ‘ “ Daar sal vir hulle 'n erfdeel wees: Ek is hulle erfdeel. Grondgebied mag julle nie vir hulle in Israel gee nie: Ek is hulle grondgebied. Die •graanoffers, reinigingsoffers en •hersteloffers – net hulle mag dit eet. Alles wat in Israel onder die ban is, sal hulle s'n wees. Die keur van al die eerste vrugte van alle soorte, en elke •wydingsgeskenk van alle soorte, al julle wydingsgeskenke, sal die priesters s'n wees. Die eerste deel van julle baksel moet julle vir die priesters gee, sodat daar seën op jou huis sal rus. “ ‘ “Enigiets wat doodgegaan het of verskeur is, of dit voëls of diere is – priesters mag dit nie eet nie.” ’ ” “ ‘ “ Wanneer julle die land as erfenis toedeel, moet julle vir die Here 'n •wydingsgeskenk eenkant hou, 'n heilige deel uit die land, vyf-en-twintigduisend el lank en twintigduisend el breed. Dit moet heilig wees, sy hele gebied, die volle omvang daarvan. Hiervan moet die deel vir die heiligdom vyfhonderd by vyfhonderd el wees, 'n volledige vierkant, en dit moet vyftig el oop veld reg rondom hê. Van hierdie afgemete terrein moet jy vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed afmeet, en daarop moet die heiligdom wees, 'n besonder heilige gebied. Dit is 'n heilige deel van die land, bestem vir die priesters wat die heiligdom bedien, hulle wat mag nader kom om die Here te dien. Dit moet 'n plek wees vir hulle huise en 'n heilige plek vir die heiligdom. 'n Gebied van vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed is bestem vir die Leviete, die tempeldienaars, as grondgebied vir hulle dorpe om in te woon. As eiendom van die stad moet julle 'n gebied van vyfduisend el breed en vyf-en-twintigduisend el lank eenkant hou, direk langs die heilige wydingsgeskenk. Vir die hele huis van Israel moet dit beskikbaar wees. Die leier se gebied is weerskante van die heilige wydingsgeskenk en die eiendom van die stad, al langs die heilige wydingsgeskenk en al langs die eiendom van die stad, aan die westekant weswaarts en aan die oostekant ooswaarts, met dieselfde lengte as een van die dele van 'n stam, van die wesgrens tot die oosgrens van die land. Dit moet sy grondgebied in Israel wees. Nooit weer mag my leiers my volk verdruk nie. Die grond moet hulle aan die huis van Israel, aan hulle stamme, gee.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is nou genoeg, leiers van Israel! Die geweld en onderdrukking, staak dit! Doen wat reg en billik is! Hou op met julle verdrywing van my volk!” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. ’ ” “ ‘ “Julle moet 'n onvervalste weegskaal, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste bat hê. Die efa en die bat moet dieselfde inhoud hê: 'n Bat moet 'n tiende van 'n gomer hou, en 'n efa ook 'n tiende van 'n gomer. Die gomer moet die standaardmaat wees. 'n Sikkel moet twintig •gera wees; en twintig sikkel, vyf-en-twintig sikkel en vyftien sikkel moet vir julle 'n mina wees.” ’ ” “ ‘ “Dit is die wydingsgeskenk wat julle moet afstaan: 'n sesde van 'n efa uit 'n gomer koring en 'n sesde van 'n efa uit 'n gomer gars; die vasgestelde hoeveelheid olyfolie – die bat is vir olyfolie die maat – naamlik een tiende bat uit 'n kor, dit wil sê tien bat, of 'n gomer, want tien bat is 'n gomer; en dan ook een skaap uit 'n kleinveetrop van tweehonderd uit die waterryke gebied van Israel. Dit is vir •graanoffers, •brandoffers en •maaltydoffers om vir julle versoening te doen.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Die hele volk van die land is verplig tot die afstaan van hierdie wydingsgeskenk aan die leier in Israel. “ ‘ “Op die leier rus dan 'n verpligting in verband met die brandoffers, die graanoffers en die •drankoffers op die feeste, op die nuwemaansfeeste en die Sabbatte, op al die feestye van die huis van Israel. Hy moet die •reinigingsoffer, die graanoffer, die brandoffer en die maaltydoffers voorsien om versoening te doen vir die huis van Israel.” ’ ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “In die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy 'n jong bul sonder gebrek neem en die heiligdom reinig. Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit aan die deurkosyn van die •tempel smeer, aan die vier hoeke van die altaar se lys en aan die kosyn van die poort na die binneste voorhof. Jy moet dieselfde doen op die sewende van die maand indien iemand dalk onopsetlik of uit onkunde gesondig het; so moet julle vir die tempel versoening doen. “ ‘ “ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet dit vir julle die Pasga wees – die fees van sewe dae waarop ongesuurde brood geëet moet word. Die leier moet op daardie dag vir homself en vir die hele volk van die land 'n bul voorsien as reinigingsoffer; en die sewe dae van die fees moet hy vir die Here 'n brandoffer voorsien – sewe bulle en sewe skaapramme sonder gebrek op elk van die sewe dae, en as reinigingsoffer 'n bokram elke dag. As graanoffer moet hy 'n efa vir 'n bul en 'n efa vir 'n skaapram voorsien, en 'n hin olyfolie vir elke efa. In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, op die fees, moet hy dieselfde voorsien vir die sewe dae – dieselfde reinigingsoffers, brandoffers, graanoffers en olyfolie.” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Die poort na die binnehof wat oos front, moet toe bly vir die ses werksdae; maar op die Sabbatdag moet dit oopgemaak word, en op die dag van die nuwemaan moet dit oopgemaak word. Die leier moet dan van buite deur die portaal in die poort ingaan en by die deurkosyn van die poort gaan staan. Die priesters moet sy •brandoffer en •maaltydoffer namens hom bring, en dan moet hy by die drumpel van die poort in aanbidding buig en uitgaan. Die poort moet tot die aand nie gesluit word nie. Die volk van die land moet op die Sabbatte en op die nuwemane by die ingang na daardie poort voor die Here in aanbidding buig. Die brandoffer wat die leier vir die Here op die Sabbatdag moet aanbied, is ses ramlammers sonder gebrek en een skaapram sonder gebrek, en as •graanoffer 'n efa by die skaapram, en by die ramlammers soveel as wat hy kan gee as graanoffer, met 'n hin olyfolie vir elke efa. Op die dag van die nuwemaan is dit 'n jong bul sonder gebrek, ses ramlammers en 'n skaapram. Hulle moet sonder gebrek wees. As graanoffer moet hy 'n efa vir die bul en 'n efa vir die skaapram voorsien, en vir die ramlammers soveel as wat hy kan bekostig, met 'n hin olyfolie vir elke efa. “ ‘ “Wanneer die leier ingaan, moet hy deur die portaal van die poort gaan en weer daarlangs uitgaan. Maar wanneer die volk van die land gedurende die feestye ingaan na die Here se teenwoordigheid, moet die een wat deur die noordpoort ingaan om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan; en die een wat deur die suidpoort ingaan, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag terugkeer na die poort waardeur hy ingekom het nie, maar moet by die teenoorgestelde kant uitgaan. Die leier moet, wanneer hulle ingaan, tussen hulle ingaan, en wanneer hulle uitgaan, moet hy ook uitgaan. “ ‘ “Tydens die feeste en feestye moet die graanoffer 'n efa by 'n bul, 'n efa by 'n ram, en soveel as wat die leier kan gee, by die ramlammers wees, met 'n hin olyfolie vir elke efa. Wanneer die leier 'n vrywillige offer bring, 'n brandoffer of maaltydoffer as vrywillige offer aan die Here, moet iemand vir hom die poort oopmaak wat oos front; en hy moet sy •brandoffer en sy •maaltydoffers bring, soos hy dit op die Sabbatdag sou doen. Wanneer hy uitgaan, moet iemand die poort sluit nadat hy uit is. “ ‘ “ 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet jy elke dag as brandoffer vir die Here offer; elke môre moet jy dit doen. 'n •Graanoffer moet jy ook elke môre daarby bring – 'n sesde van 'n efa, en 'n derde van 'n hin olyfolie om oor die gesifte meel te sprinkel as 'n graanoffer vir die Here. Dit is 'n durende voorskrif wat altyd geld. Hulle moet die ramlam, die graanoffer en die olyfolie elke môre bring as 'n gereelde brandoffer.” ’ ” “ ‘So sê my Heer, die Here: “Wanneer die leier uit sy erfenis aan enige van sy seuns 'n geskenk gee, sal dit aan sy seuns behoort. Dit is hulle erfgrond as 'n erfenis. Maar wanneer hy van sy erfenis as 'n geskenk aan een van sy dienaars gee, behoort dit aan hom net tot die jaar van kwytskelding. Dan val dit terug na die leier: Dit is slegs sy seuns se erfenis – aan hulle behoort dit. Die leier mag nie van die volk se erfdeel vat om hulle so uit hulle erfgrond te verdring nie; van sy eie erfgrond moet hy aan sy seuns nalaat, sodat my volk nie verstrooi raak, elkeen weg van sy erfgrond nie.” ’ ” Die man neem my toe deur die ingang langs die poort na die priesters se heilige kamers wat noord front. Kyk, daar was 'n plek op die verste punt aan die westekant. Hy het vir my gesê: “Dit is die plek waar die priesters die •hersteloffers en die •reinigingsoffers moet gaarmaak en die graanoffers moet bak, sodat hulle dit nie uitneem na die buitenste voorhof, en die volk sodoende heilig maak nie.” Daarna neem hy my uit na die buitenste voorhof, en laat my by die vier hoeke van die voorhof verbyloop. Kyk, daar was in elke hoek van die voorhof 'n binnehof. In die vier hoeke van die voorhof was vier kleiner binnehowe, veertig el lank en dertig el breed; al vier met dieselfde mate. Daar was rye gepakte klip rondom al vier, en daar is rondom kookplekke aangebring onderaan die rye gepakte klip. Hy sê toe vir my: “Dit is die plek waar hulle moet kook, waar die tempeldienaars die offerandes van die volk moet gaarmaak.” Die man het my teruggeneem na die ingang van die •tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk, water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek – water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet – 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg – water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?” Hy het my weer na die stroom se wal laat terugkeer. Toe ek weer terug is daar, kyk, toe is daar op die stroom se walle 'n groot aantal bome, aan albei kante. Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See. “Sy moerasse en kuile sal egter nie vars word nie; vir soutontginning is dit bestem. Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.” So sê my Heer, die Here: “Dit is die grense waarbinne julle die land moet vererf aan die twaalf stamme van Israel. Josef kry twee afgemete dele. Julle moet dit as erfdeel neem, elkeen met dieselfde grootte uit die land waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan julle voorvaders te gee. Hierdie land word aan julle toegewys as erfdeel. “Dit is dan die grense van die land: Aan die noordekant is dit vanaf die Groot See met die pad na Getlon, Lebo-Hamat, Sedad, Berota, Sibrajim, wat tussen die gebiede van Damaskus en Hamat lê, en Gaser-Enon wat op die grens van Gauran lê. Die grens is vanaf die see tot by Gaser-Enon, aan die grens van Damaskus. Die noordelikste punt is die grens by Hamat. Dit is die noordekant. Aan die oostekant is dit vanaf 'n punt tussen Gauran en Damaskus; en tussen Gilead en die land Israel vorm die Jordaan die grens na die Oostelike See tot by Tamar. Dit is die oosgrens. Aan die suidekant is dit suidwaarts vanaf Tamar tot by die water van Meriba-Kades en met die Spruit na die Groot See. Dit is die suidgrens aan die suidekant. Aan die westekant vorm die Groot See die grens tot by 'n punt regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.” “Julle moet hierdie land onder julle verdeel, onder die stamme van Israel. Dit moet so gebeur: Julle moet dit as erfdeel aan julleself toewys en aan die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen julle het en kinders verwek het by julle. Hulle geld vir julle as gebore Israeliete, as deel van die Israeliete. Saam met julle moet 'n erfdeel aan hulle toegewys word tussen die stamme van Israel. By die stam waar die vreemdeling tydelike verblyf het, daar moet julle hom sy erfdeel gee.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “ Dit is die name van die stamme: In die verre noorde, al langs die pad na Getlon, Lebo-Hamat en Gaser-Enan, met die gebied van Damaskus aan die noordekant langs Hamat, van die ooste tot in die weste, kom Dan toe – Dan, een deel. Langs die gebied van Dan, van die ooste tot in die weste – Aser, een deel. Langs die gebied van Aser, van die ooste tot in die weste – Naftali, een deel. Langs die gebied van Naftali, van die ooste tot in die weste – Manasse, een deel. Langs die gebied van Manasse, van die ooste tot in die weste – Efraim, een deel. Langs die gebied van Efraim, van die ooste tot in die weste – Ruben, een deel. Langs die gebied van Ruben, van die ooste tot in die weste – Juda, een deel. Langs die gebied van Juda, van die ooste tot in die weste, moet die •wydingsgeskenk wat julle afstaan, vyf-en-twintigduisend el breed, en van die ooste tot in die weste so lank soos een van die ander dele wees. Die heiligdom moet daarbinne wees. Die wydingsgeskenk wat julle aan die Here self afstaan, moet vyf-en-twintigduisend el lank en twintigduisend el breed wees. Vir die volgende groepe is die heilige wydingsgeskenk bestem: Vir die priesters, aan die noordekant vyf-en-twintigduisend el, aan die westekant tienduisend el breed, aan die oostekant tienduisend el breed, en aan die suidekant vyf-en-twintigduisend el. Die heiligdom van die Here moet daarbinne wees. Vir die gewyde priesters uit die nageslag van Sadok wat die verpligtinge teenoor My nagekom het, is dit bestem, vir hulle wat nie afgedwaal het toe die Israeliete afgedwaal het soos die Leviete afgedwaal het nie. Dit is vir hulle 'n besondere wydingsgeskenk uit die wydingsgeskenk van die land, 'n besonder heilige gawe langs die gebied van die Leviete. Die Leviete se gebied is direk langs dié van die priesters, vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed. Die volle lengte van die wydingsgeskenk is vyf-en-twintigduisend en die breedte twintigduisend. Hulle mag niks daarvan verkoop nie, en niemand mag dit verruil nie. Die beste deel van die land mag nie in ander hande oorgaan nie, want dit is aan die Here gewy. “ Die vyfduisend el wat in die breedte oorbly langs die vyf-en-twintigduisend el, is nie gewy nie; dit is vir die stad as woongebied en meentgrond bedoel. Die stad moet daarin wees, en dit is die afmetings daarvan: aan die noordekant vierduisend vyfhonderd el, aan die suidekant vierduisend vyfhonderd el, aan die oostekant vierduisend vyfhonderd el, aan die westekant vierduisend vyfhonderd el. Die meentgrond van die stad moet aan die noordekant tweehonderd-en-vyftig el, aan die suidekant tweehonderd-en-vyftig el, aan die oostekant tweehonderd-en-vyftig el, en aan die westekant tweehonderd-en-vyftig el wees. “Dit wat in die lengte oorbly direk langs die heilige wydingsgeskenk, is tienduisend el na die oostekant en tienduisend el na die westekant. Dit lê ewewydig met die heilige wydingsgeskenk, en die opbrengs daarvan sal as voedsel vir die stad se werkers dien. Wat die werkers van die stad betref – mense uit al die stamme van Israel moet dit bewerk. Die hele wydingsgeskenk is vyf-en-twintigduisend by vyf-en-twintigduisend el. As 'n vierkant moet julle die heilige wydingsgeskenk afstaan, saam met die grondgebied van die stad. “ Die oorblywende deel is vir die leier: Die gebied aan beide kante van die heilige wydingsgeskenk en die grondgebied van die stad, langs die vyf-en-twintigduisend el van die wydingsgeskenk tot by die oosgrens, en weswaarts langs die vyf-en-twintigduisend el tot by die wesgrens, ewewydig met die ander dele, behoort aan die leier. Die heilige wydingsgeskenk en die heiligdom van die •tempel is in die middel daarvan, en die grondgebied van die Leviete aan die een kant en die grondgebied van die stad aan die ander kant, lê binne die deel wat aan die leier behoort. Tussen die gebied van Juda en die gebied van Benjamin – aan die leier behoort dit. “Wat die ander stamme betref: Van die ooste tot in die weste – Benjamin, een deel. Langs die gebied van Benjamin, van die ooste tot in die weste – Simeon, een deel. Langs die gebied van Simeon, van die ooste tot in die weste – Issaskar, een deel. Langs die gebied van Issaskar – Sebulon, een deel. Langs die gebied van Sebulon, van die ooste tot in die weste – Gad, een deel. Langs die gebied van Gad in die suide, strek die grens aan die suidekant van Tamar af oor Meriba-Kades met die Spruit langs tot by die Groot See. “Dit is die land wat julle as erfdeel aan die stamme van Israel moet toewys, en dit is hulle dele.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Dit is die uitgange van die stad. Aan die noordekant is die afstand vierduisend vyfhonderd el. Die poorte van die stad dra die name van die stamme van Israel. Daar is drie poorte na die noorde: een poort van Ruben; een poort van Juda; een poort van Levi. “Die oostekant is vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte: een poort van Josef; een poort van Benjamin; een poort van Dan. “Aan die suidekant is die afstand vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte: een poort van Simeon; een poort van Issaskar; een poort van Sebulon. “Die westekant is vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte: een poort van Gad; een poort van Aser; een poort van Naftali. “Rondom is dit agttienduisend el; en die naam van die stad is van nou af: Die- Here- is-daar.” In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, na Jerusalem gekom en dit beleër. Die Heer het Jojakim, die koning van Juda, en ook 'n deel van die voorwerpe in die huis van God in sy hand oorgegee. Hy het dit na die land Sinar, na die tempel van sy gode geneem – die voorwerpe het hy na die skatkamer van sy gode geneem. Die koning het Aspenas, die rabsaries, toe aangesê om uit die Israeliete, uit die koninklike familie en die vernames, jong seuns te bring aan wie daar nie enige liggaamsgebrek is nie, wat 'n goeie voorkoms het, wat insig in alle soorte wysheid het, wat oor kennis en goeie oordeelsvermoë beskik, en wat in staat is om in die paleis van die koning te dien, en in die skrif en taal van die Galdeërs onderrig te word. Vir hulle het die koning, volgens die vereistes van elke dag, van die koning se kos en van die wyn wat hy gedrink het, voorgeskryf, sodat hulle vir drie jaar lank opgevoed kon word om aan die einde daarvan in diens van die koning te kan staan. Onder hulle was daar van die Judeërs – Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die toesighouer oor die paleisamptenare, het hulle name vervang: Daniël het hy Beltsasar, Gananja het hy Sadrag, Misael het hy Mesag, en Asarja het hy Abednego genoem. Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare 'n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. Die toesighouer oor die paleisamptenare het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, wat vir julle kos en drank voorgeskryf het. Waarom moet hy sien dat julle gesigte maerder is as dié van die ander jong seuns van julle ouderdom? Julle sal maak dat die koning my kop eis.” Daniël sê toe vir die oppasser wat die toesighouer oor die paleisamptenare oor hom, Daniël, en oor Gananja, Misael en Asarja aangestel het: “Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. Laat dan in u teenwoordigheid ons voorkoms en die voorkoms van die ander jong seuns wat die koning se kos eet, nagegaan word. Handel dan met u dienaars volgens wat u sien.” Hy het na hulle geluister wat hierdie saak betref, en hulle tien dae lank getoets. Aan die einde van die tien dae was hulle voorkoms beter en het hulle liggame voller vertoon as al die jong seuns wat die koning se kos bly eet het. Die oppasser het toe hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en vir hulle groente bly gee. En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp. Aan die einde van die tydperk wat die koning bepaal het dat hulle ingebring moes word, het die toesighouer oor die paleisamptenare hulle voor Nebukadnesar gebring. Die koning het met hulle gepraat, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het by die koning in diens getree. En in verband met enige saak wat wysheid en insig geverg het waaroor die koning hulle uitgevra het, het hy hulle tien maal beter gevind as al die waarsêerpriesters en goëlaars in sy hele koninkryk. Daniël was daar tot die eerste regeringsjaar van koning Kores. In die tweede jaar van Nebukadnesar se regering het Nebukadnesar drome gedroom. Sy gees was ontsteld, en sy slaap was daarmee heen. Die koning gee toe opdrag dat die waarsêerpriesters, goëlaars, towenaars en Galdeërs ontbied word om vir die koning sy drome uit te lê. Hulle het gekom en voor die koning gaan staan. Die koning het vir hulle gesê: “Ek het 'n droom gehad, en my gees is ontsteld daaroor om te weet wat die droom was.” Die Galdeërs sê toe vir die koning (Aramees): “O koning, leef vir ewig! Vertel die droom vir u dienaars, dan sal ons die uitleg gee.” Die koning antwoord en sê toe vir die Galdeërs: “Die saak staan vas by my. As julle nie aan my die droom en sy uitleg bekend kan maak nie, sal julle ledemate afgekap word, en van julle huise sal vullishope gemaak word. As julle egter die droom en sy uitleg bekend maak, sal julle geskenke, belonings en groot eer van my ontvang. Daarom, maak nou die droom en sy uitleg bekend.” Hulle het 'n tweede keer geantwoord en gesê: “Die koning moet die droom vir sy dienaars vertel, dan sal ons die uitleg gee.” Daarop antwoord die koning en sê: “Ek weet sonder twyfel dat julle probeer tyd wen, omdat julle gesien het dat die saak by my vasstaan, en dat, as julle aan my nie die droom bekend kan maak nie, net een wet vir julle geld! Gevolglik het julle oor 'n vals en leuenagtige verklaring ooreengekom, om dié aan my oor te dra, totdat die tyd gunstiger is. Daarom, vertel vir my die droom! Ek sal dan weet of julle sy uitleg aan my bekend kan maak.” Die Galdeërs het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Daar is nie 'n mens op aarde wat in staat is om aan die koning se versoek te voldoen nie. Daarom het nog geen koning, hoe groot en magtig ook al, so iets van enige waarsêerpriester of towenaar of Galdeër gevra nie. Die saak wat die koning verlang, is moeilik, en daar is niemand wat dit vir die koning kan uitlê nie, behalwe die gode, wie se woning nie by sterflinge is nie.” Hieroor het die koning hom vererg, en hy was baie kwaad. Hy gee toe bevel dat al die wyses van Babilonië om die lewe gebring moet word. Die bevel is uitgevaardig: “Die wyses moet doodgemaak word!” Hulle soek toe ook Daniël en sy metgeselle om hulle dood te maak. Daarop het Daniël met raad en goeie oordeel gereageer teenoor Ariog, die •aanvoerder van die koning se lyfwag, wat uitgetrek het om die wyses van Babilonië dood te maak. In sy reaksie het hy vir Ariog, die gevolmagtigde van die koning, gevra: “Waarom is die bevel van die kant van die koning dan so streng?” Daarop het Ariog die saak aan Daniël verduidelik, waarna Daniël ingegaan en vir die koning gevra het dat tyd aan hom gegun moes word om die uitleg van die droom aan die koning bekend te maak. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan sy metgeselle Gananja, Misael en Asarja meegedeel, sodat hulle om ontferming kon pleit by die God van die hemel oor hierdie geheim, en Daniël en sy metgeselle nie om die lewe gebring sou word saam met die res van die wyses van Babilonië nie. Aan Daniël is die geheim toe in 'n nagtelike visioen geopenbaar, waarop Daniël die God van die hemel geprys het. Daniël het in sy reaksie gesê: “Mag die Naam van God van ewigheid tot ewigheid geprys word, Hy aan wie die wysheid en mag behoort! Hy verander tye en tydperke; Hy sit konings af en stel konings aan. Hy gee wysheid aan wyses en kennis aan wie insig het. Hy openbaar dit wat diep en verborge is; Hy weet wat in die duisternis is. Die lig is by Hom tuis. U, die God van my voorouers, loof en besing ek; want U het my wysheid en krag gegee, en nou aan my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het – die saak van die koning het U aan ons bekend gemaak.” Daarop het Daniël ingegaan na Ariog, vir wie die koning aangestel het om die wyses van Babilonië om die lewe te bring. Hy het so vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babilonië om die lewe bring nie; bring my voor die koning, dan sal ek vir die koning die uitleg gee.” Ariog het toe in groot haas vir Daniël voor die koning gebring en so vir hom gesê: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.” Die koning het daarop geantwoord deur vir Daniël, wie se naam Beltsasar was, te sê: “Is jy in staat om die droom wat ek gehad het en sy uitleg aan my bekend te maak?” Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom, die visioene in u kop terwyl u in u bed was, is die volgende: U, o koning – u gedagtes wat in u bed by u opgekom het, gaan oor wat hierna sal gebeur. Hy wat geheime openbaar, het aan u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is aan my geopenbaar, nie deur wysheid wat by my meer sou wees as by al die lewendes nie, maar ter wille daarvan dat die uitleg aan die koning bekend gemaak sal word, en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het 'n visioen gehad: Kyk, daar was 'n groot beeld. Hierdie beeld was groot, en sy glans buitengewoon. Dit het voor u gestaan; die voorkoms daarvan was vreesaanjaend. Hierdie beeld – sy kop was van die beste goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en heupe van koper, sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. U het nog gekyk, toe daar 'n klip vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie. Dit het die beeld teen sy voete van yster en klei getref en verpletter. Daarop is die yster, koper, silwer en goud saam verpletter, en dit het geword soos kaf vanaf die dorsvloere in die somer. Die wind het dit weggewaai, en geen spoor daarvan kon gevind word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul. Dit was die droom, en oor die uitleg daarvan sal ons nou voor die koning praat. U, o koning, is die koning van die konings aan wie die God van die hemel die koningskap, die mag, die krag en eer gegee het. Ja, waar ook al mense, die diere van die veld en die voëls van die hemel woon, het Hy hulle in u hand gegee. Hy het u as heerser oor hulle almal aangestel. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk tot stand kom, geringer as u s'n, dan 'n ander, derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. Die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees. Omdat yster alles verpletter en vermorsel, sal hierdie koninkryk, soos yster wat vergruis, al daardie ander verpletter en vergruis. Dat u gesien het dat die voete en tone deels van pottebakkersklei en deels van yster is, dui op 'n verdeelde koninkryk. Van die bestendigheid van die yster sal daarin wees, want u het die yster gemeng met die klam klei gesien. En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – 'n deel van die koninkryk sal sterk wees, en 'n deel daarvan sal breekbaar wees. Dat u die yster gemeng met die klam klei gesien het, dui daarop dat die mense deur ondertrouery vermeng sal raak. Hulle sal egter nie vanself aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan 'n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot 'n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. U het daarom gesien dat 'n klip uit die berg vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie, en dat dit die yster, koper, klei, silwer en goud verpletter. 'n Groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna gaan gebeur. Die droom is waar en die uitleg daarvan is betroubaar.” Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.” Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly. Koning Nebukadnesar het 'n beeld van goud gemaak. Die hoogte was sestig el en die breedte ses el. Hy het dit opgerig in die vlakte van Dura in die provinsie Babel. Koning Nebukadnesar ontbied toe die satrape, landvoogde, •streekgoewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters en amptenare, ja, al die •hoë amptenare van die provinsies, om na die wydingsgeleentheid van die beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het, te kom. Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters en amptenare, ja, al die hoë amptenare van die provinsies het toe byeengekom vir die wydingsgeleentheid van die beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. Hulle het voor die beeld wat Nebukadnesar opgerig het, gaan staan. Daarna het 'n herout hardop uitgeroep: “Julle word beveel, volke, nasies en taalgroepe: Sodra julle die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, moet julle neerval en eer betoon aan die goue beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. Wie ook al nie neerval en eer betoon nie, sal dadelik binne-in die vlammende vuuroond gegooi word.” Daarom, die oomblik toe al die volke die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, ja, al die musiekinstrumente, het al die volke, nasies en taalgroepe neergeval en eer betoon aan die goue beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. Juis op daardie oomblik het Galdese manne na vore getree en die Jode aangekla. Hulle praat toe en sê vir koning Nebukadnesar: “O koning, leef vir ewig! U, o koning, u het 'n bevel uitgevaardig dat elke mens wat die geluid van die horing, rietfluit, siter, lier en harp in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, hoor, moet neerval en aan die goue beeld eer betoon. En wie ook al nie neerval en eer betoon nie, sal binne-in die vlammende vuuroond gegooi word. Daar is Joodse manne, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u oor die administrasie van die provinsie Babel aangestel het. Hierdie manne het hulle nie aan u bevel, o koning, gesteur nie. Hulle dien nie u gode nie en betoon nie eer aan die goue beeld wat u opgerig het nie.” Toe het Nebukadnesar, rasend van woede, beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego gehaal moet word. Hierdie manne is toe voor die koning gebring. Nebukadnesar het begin deur vir hulle te sê: “Is dit regtig so, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my gode nie dien nie en aan die goue beeld wat ek opgerig het, nie eer betoon nie? Nou, as julle bereid is om, sodra julle die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, neer te val en aan die beeld wat ek gemaak het, eer te betoon, goed en wel. Maar as julle nie eer betoon nie, sal julle dadelik binne-in die vlammende vuuroond gegooi word. Wie is die god wat julle dan uit my hand sal red?” Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.” Nebukadnesar was toe buite homself van woede en sy gesigsuitdrukking het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het daarop geantwoord deur bevel te gee dat die oond verhit moes word, sewe maal warmer as wat nodig was. Hy het manne, die sterkste manne in sy leër, beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die vlammende vuuroond te gooi. Hierdie manne is toe met hulle klere aan, in hulle mantels, broeke en tulbande, vasgebind en binne-in die vlammende vuuroond gegooi. As gevolg van die streng opdrag van die koning en die oond wat uitermate verhit was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego opgetel het, doodgebrand. Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval. Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.” Daarop gaan Nebukadnesar nader na die opening van die vlammende vuuroond en sê toe: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe kom Sadrag, Mesag en Abednego reg uit die vuuroond. Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs en raadsmanne van die koning het byeengekom en merk toe aan hierdie manne dat die vuur nie mag gehad het oor hulle liggame nie, dat die hare op hulle koppe nie geskroei was nie, dat hulle mantels nie verander het nie, en dat daar geen brandreuk aan hulle was nie. Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê: “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam en hulle liggame op die spel geplaas het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie. 'n Bevel word deur my uitgevaardig dat enige volk, nasie en taal wat iets godslasterliks sê teen die God van Sadrag, Mesag en Abednego, se ledemate afgekap sal word en sy huis in 'n vullishoop omskep sal word. Want daar is nie 'n ander god wat so kan verlos nie.” Daarna het die koning Sadrag, Mesag en Abednego voorspoed laat beleef in die provinsie Babel. “ Koning Nebukadnesar aan alle volke, nasies en taalgroepe wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! “ Dit is vir my goed om die tekens en wonders wat die Allerhoogste God aan my gedoen het, openlik bekend te maak. “Sy tekens – hoe groot is hulle nie, en sy wonders – hoe magtig is hulle nie! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag. “ Ek, Nebukadnesar, was sorgeloos in my huis en voorspoedig in my paleis. Ek het 'n droom gehad, en dit het my verskrik. Die droombeelde in my bed en die visioene in my kop het my ontstel. 'n Bevel is deur my uitgevaardig dat al die wyses van Babilonië voor my gebring moes word, sodat hulle die uitleg van die droom aan my bekend kon maak. Toe die waarsêerpriesters, die towenaars, die Galdeërs en voorspellers gekom het, het ek die droom aan hulle vertel, maar sy uitleg kon hulle nie aan my bekend maak nie. Oplaas het voor my verskyn Daniël, wie se naam Beltsasar is – na aanleiding van die naam van my god – en in wie die gees van die heilige gode is. Ek het toe die droom aan hom vertel, ‘Beltsasar, hoof van die waarsêerpriesters, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en geen geheim jou onderkry nie; die visioene in die droom wat ek gehad het – vertel wat die uitleg daarvan is. Wat die visioene in my kop daar in my bed betref: Ek het gesien, kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was geweldig. Die boom het gegroei en sterk geword. Sy hoogte het tot aan die hemel gereik, en hy was sigbaar tot aan die einde van die hele aarde. Sy blare was mooi en sy vrugte baie. Daar was kos aan hom vir almal. Onder hom het die diere van die veld skaduwee gevind, en in sy takke was die voëls van die hemel tuis – al wat leef, is deur hom gevoed. Daar in my bed het ek in die visioene in my kop gesien: Kyk, 'n boodskapper, 'n heilige, was besig om uit die hemel neer te daal. Terwyl hy hardop uitroep, het hy die volgende gesê: “ ‘ “Vel die boom, en kap sy takke af! Stroop sy blare af, en verstrooi sy vrugte! Die diere moet onder hom uit vlug en die voëls uit sy takke. Maar sy penwortel – laat dit in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld. Van die dou van die hemel sal hy nat word, en met die diere sal hy die gras van die aarde deel. Sy hart sal verander weg van dié van 'n mens, en die hart van 'n dier sal aan hom gegee word. Sewe tydperke sal oor hom heen gaan. Die bevel berus op die beslissing van boodskappers, en die saak is in opdrag van heiliges, met die doel dat lewendes sal erken dat die Allerhoogste mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. 'n Nederige onder die mense sal Hy daaroor aanstel.” “ ‘Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. En jy, Beltsasar, vertel wat die uitleg is, aangesien geeneen van die wyses in my koninkryk daarin kon slaag om die uitleg aan my bekend te maak nie. Maar jy is in staat daartoe, omdat die gees van die heilige gode in jou is.’ ” Daarop was Daniël, wie se naam Beltsasar was, vir 'n kort tydjie verbysterd, en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning sê toe: “Beltsasar, moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie!” Beltsasar het geantwoord en gesê: “My heer, was die droom maar vir u haters en sy uitleg vir u teenstanders bedoel! Die boom wat u gesien het, “wat gegroei en sterk geword het, waarvan die hoogte tot aan die hemel reik, wat oor die hele aarde sigbaar is, waarvan die blare mooi en sy vrugte baie is, met kos aan hom vir almal, onder wie die diere van die veld woon, en in wie se takke die voëls van die hemel tuis is, “is u, o koning, wat gegroei en sterk geword het. U grootheid het gegroei en tot aan die hemel gereik, en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning 'n boodskapper, 'n heilige, gesien het wat uit die hemel neerdaal en sê, ‘Vel die boom en vernietig dit, maar laat die penwortel in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld, en deur die dou van die hemel sal hy benat word en saam met die diere van die veld deel hê aan die gras totdat sewe tydperke oor hom heen gegaan het, – dit is die uitleg, o koning, en die dekreet van die Allerhoogste wat oor my heer die koning uitgevaardig is: U sal uitgedryf word, weg van mense af, en by die diere van die veld sal u woning wees. U sal gras gevoer word, soos vir beeste, en van die dou van die hemel sal u nat word. Sewe tydperke sal oor u heen gaan, totdat u erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. Dat daar bevel gegee is om die penwortel van die boom te laat staan, beteken dat u koningskap vir u behoue sal bly, sodra u erken dat die hemel heers. Daarom, o koning, mag my raad vir u aanvaarbaar wees: Breek deur die regte optrede met u sonde en met u ongeregtigheid, deur guns te betoon aan armes – miskien sal u voorspoed lank duur.” Dit alles het met koning Nebukadnesar gebeur. Teen die einde van die twaalfde maand was hy besig om rond te stap op die dak van die koninklike paleis in Babel. Die koning het toe begin praat en gesê: “Is dit nie die grote Babel wat ek tot 'n koninklike verblyf opgebou het deur die krag van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?” Die woorde was nog op die lippe van die koning, toe val daar 'n stem uit die hemel: “Aan jou, koning Nebukadnesar, word gesê, ‘Die koningskap het van jou gewyk. Hulle gaan jou uitdryf, weg van mense af, en by die diere van die veld sal jou woning wees. Soos vir beeste sal hulle jou gras voer. Sewe tydperke sal oor jou heen gaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil.’ ” Die uitspraak is dadelik vervul oor Nebukadnesar, en hy is uitgedryf, weg van mense af. Hy het gras geëet soos beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword, totdat sy hare soos die vere van arende, en sy naels soos die kloue van voëls uitgegroei het. “ Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer. “Ek het die Allerhoogste geloof en die Een wat ewig leef, besing en geëer – Hy wie se heerskappy 'n ewige heerskappy is, en wie se koningskap van geslag tot geslag duur. Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’ “ In dié tyd het my verstand na my teruggekeer, en wat die waardigheid van my koningskap betref – my majesteit en my luister het na my teruggekeer, en my raadsmanne en edeles het my weer opgesoek. Oor my koninkryk is ek heraangestel, en my grootheid het buitengewoon toegeneem. “En ek, Nebukadnesar, besing en verheerlik en eer nou die Koning van die hemele, omdat al sy werke waarheid is en sy paaie reg, omdat Hy hulle wat met trots rondloop, kan verneder.” Koning Belsasar het 'n groot feesmaal voorberei vir sy duisend maghebbers. Hy het wyn gedrink in die teenwoordigheid van hierdie duisend. Belsasar het, terwyl hy die wyn geniet, opdrag gegee dat die voorwerpe van goud en silwer wat sy vader Nebukadnesar uit die •tempel in Jerusalem verwyder het, gebring moes word, sodat die koning en sy maghebbers, sy haremvroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle bring toe die voorwerpe van goud wat uit die tempel, die huis van God in Jerusalem, verwyder is, en die koning, sy maghebbers, haremvroue en byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip geprys. Op daardie oomblik het vingers van 'n mens se hand verskyn en oorkant die kandelaar op die pleister van die koninklike paleis se muur geskryf. Die koning het die deel van die hand wat besig was om te skryf, gesien. Toe word die koning bleek, en sy gedagtes het hom verskrik. Sy heupgewrigte het slap geword en sy knieë het teen mekaar geklap. Die koning het hard geskreeu dat die towenaars, Galdeërs en voorspellers gebring moet word. Die koning praat toe en sê vir die wyses van Babilonië: “Enige mens wat hierdie skrif kan lees en die uitleg daarvan vir my kan gee, sal in purperrooi geklee word met 'n goue ketting om sy nek, en hy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.” Al die wyses van die koning het toe ingekom. Hulle kon egter nie die skrif lees en die uitleg aan die koning bekend maak nie. Toe was koning Belsasar hewig ontsteld, en sy gesig het nog bleker geword. Sy maghebbers was verward. Die koningin het toe, vanweë die gesprek tussen die koning en sy maghebbers, die feessaal binnegegaan. Die koningin praat toe en sê: “O koning, leef vir ewig! Moenie dat u gedagtes u ontstel nie; en u hoef nie bleek te wees nie! Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u vader is helderheid, insig en wysheid soos die wysheid van gode by hom gevind. Koning Nebukadnesar, u vader, het hom aangestel as hoof van die waarsêerpriesters, towenaars, Galdeërs en voorspellers – ja, u vader, die koning – en wel omdat 'n buitengewone gees en verstand, die insig om drome te verklaar, raaisels uit te lê en om probleme te ontrafel, in hom gevind is, in Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het. Laat Daniël nou ontbied word; hy sal die uitleg gee.” Daniël is toe voor die koning gebring, waarop die koning vir Daniël gevra het: “Is jy Daniël, een van die Judese ballinge wat deur my vader uit Juda gebring is? Ek het van jou gehoor, dat die gees van die gode in jou is, en dat helder insig en buitengewone wysheid in jou gevind is. En nou, die wyses, die towenaars, is voor my gebring, sodat hulle hierdie skrif kon lees en die uitleg daarvan aan my bekend kon maak. Maar hulle was nie daartoe in staat om die uitleg van die woorde bekend te maak nie. Ek het egter van jou gehoor dat jy in staat is om uitleg te gee en probleme te ontrafel. Daarom, as jy in staat is om die skrif te lees en die uitleg daarvan bekend te maak, sal jy in purperrooi geklee word, met 'n goue ketting om jou nek, en jy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.” Daniël antwoord toe en sê vir die koning: “U geskenke mag u vir uself hou, en u beloning – gee dit aan iemand anders! Ek sal in elk geval die skrif vir die koning lees, en die uitleg aan hom bekend maak. Wat u betref, o koning: Die Allerhoogste God het die koningskap, die grootheid, eer en majesteit gegee aan Nebukadnesar, u vader. Vanweë die grootheid wat God aan hom gegee het, was al die volke, nasies en taalgroepe in vrees en bewing voor hom: Hy het doodgemaak wie hy wou, en laat leef wie hy wou. Hy het verhef wie hy wou, en verneder wie hy wou. Maar toe hy hooghartig geraak het, en sy gees so verhard het dat hy oormoedig geraak het, is hy van sy koninklike troon gestoot en van sy eer gestroop. Hy is verdryf, weg van mense af, en sy hart het soos dié van 'n dier geword. By die wilde donkies was sy woonplek. Hy is gras gevoer, soos vir beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword – totdat hy erken het dat die Allerhoogste God mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil. “Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. Teen die Heer van die hemel het u uself verhef. Die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring en u, u maghebbers, u haremvroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink. Die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip, wat nie sien, nie hoor of enigiets weet nie – u het hulle lof besing; maar die God in wie se hand u asem is, en by wie al u paaie is, Hom het u nie geëer nie. Vanuit sy teenwoordigheid is die handpalm toe gestuur en is hierdie skrif geskryf. Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin. Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.” Belsasar het toe opdrag gegee, en hulle het Daniël in purperrooi geklee, en 'n goue ketting om sy nek gehang. Hulle het 'n proklamasie uitgevaardig, dat hy die derde magtigste in die koninkryk is. Daardie selfde nag is Belsasar, die koning van die Galdeërs, gedood. Darius die Meder het die koningskap ontvang toe hy twee-en-sestig jaar oud was. Darius het dit goedgedink om honderd-en-twintig satrape oor die koninkryk aan te stel, wat oor die hele koninkryk verspreid sou wees. Oor hulle was daar drie toesighouers, waarvan Daniël een was, aan wie hierdie satrape rekenskap moes gee, sodat die koning nie skade sou ly nie. Hierdie Daniël het homself onderskei van die toesighouers en satrape, omdat 'n buitengewone gees in hom was; en die koning het beplan om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Daarop het die toesighouers en satrape na 'n rede vir 'n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie. Dié manne sê toe: “Ons sal nie enigiets vind teen hierdie Daniël nie, behalwe as ons iets teen hom vind in die wet van sy God.” Daarna het hierdie toesighouers en satrape by die koning ingestorm en die volgende vir hom gesê: “O koning Darius, leef vir ewig! Al die toesighouers van die koninkryk, die landvoogde, die satrape, die raadsmanne en die •streekgoewerneurs het met mekaar ooreengekom dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod moet bekragtig, dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens, behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word. O koning, vaardig dan nou die verbod uit, en stel 'n bevelskrif op wat nie verander kan word nie, wat as 'n wet van Mede en Perse nie herroep mag word nie.” Om dié rede het koning Darius die bevelskrif en die verbod op skrif gestel. Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het. Daardie manne het toe ingestorm en Daniël biddend en smekend voor sy God gekry. Daarna het hulle voor die koning verskyn en met hom gepraat oor die koninklike verbod: “Het u nie 'n verbod op skrif gestel dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak staan vas as 'n wet van Mede en Perse, wat nie herroep mag word nie.” Toe antwoord hulle en sê vir die koning: “Daniël, een van die ballinge van Juda, steur hom nie aan u, o koning, of aan die verbod wat u op skrif gestel het nie, maar drie keer op 'n dag rig hy sy bede tot sy God. ” Toe die koning dít hoor, was hy erg ontsteld, en het hy sy bes gedoen om Daniël te red. Tot sononder het hy hom beywer om hom te bevry. Daardie manne het ingestorm by die koning en vir die koning gesê: “Onthou, o koning, dat dit 'n wet van Mede en Perse is dat elke verbod en verordening wat die koning uitgevaardig het, nie verander mag word nie.” Daarop het die koning opdrag gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. En die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.” 'n Klip is gebring en op die opening van die kuil geplaas, en die koning het dit met sy seëlring en die seëlringe van sy maghebbers verseël, sodat niks omtrent Daniël verander sou word nie. Die koning het daarna na sy paleis gegaan en die nag deurgebring deur te vas. Geen kos is vir hom gebring nie, en slaap het hom ontwyk. In die oggend, teen die eerste lig, het die koning opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. Terwyl hy nader aan die kuil kom, het hy na Daniël geroep met 'n angstige stem. Die koning het vir Daniël gesê: “Daniël, dienskneg van die lewende God, was jou God wat jy voortdurend dien, in staat om jou te red van die leeus?” Daniël praat toe met die koning: “O koning, leef vir ewig! My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is. Ook u, o koning, het ek geen leed aangedoen nie.” Die koning was toe uitermate verheug oor hom, en hy het mense opdrag gegee om Daniël uit die kuil op te trek. Daniël is uit die kuil opgetrek en geen letsel kon aan hom gekry word nie, omdat hy op sy God vertrou het. Die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne wat Daniël aangekla het, gebring, en hulle in die leeukuil gegooi, hulle saam met hulle kinders en vroue. Hulle het nog nie eers die bodem van die kuil bereik nie, toe die leeus hulle oorweldig en al hulle beendere vergruis. Daarna het koning Darius aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele aarde woon, geskryf: Mag julle vrede groot wees! 'n Bevel is deur my uitgevaardig dat, in die hele magsgebied van my koninkryk, almal met vrees en bewing vervul moet wees vir die God van Daniël. Want Hy is die lewende God wat in ewigheid bestaan; sy koninkryk is een wat nie vernietig word nie, en sy heerskappy is tot die einde toe. Hy wat red en verlos en tekens en wonders doen in die hemel en op die aarde, dit is Hy wat Daniël gered het uit die kloue van die leeus. Hierdie Daniël was voorspoedig onder die regering van Darius en onder die regering van Kores die Pers. In die eerste regeringsjaar van Belsasar, die koning van Babilonië, het Daniël 'n droom gehad; dit was visioene in sy kop, terwyl hy in sy bed was. Hy het daarna die droom neergeskryf. Die hoofsom van die gebeure het hy saamgevat. Daniël het die volgende gesê: “In my visioen in die nag het ek gesien hoe die vier winde van die hemel die groot see in beroering bring. Vier groot diere het uit die see opgekom, elkeen anders as die ander. “ Die eerste was soos 'n leeu met die vlerke van 'n arend. Ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgepluk was, hy van die grond af opgelig is, op twee voete soos 'n mens neergesit is en die hart van 'n mens aan hom gegee is. “ En kyk, 'n ander, 'n tweede dier, het soos 'n beer gelyk, en is langs die eerste dier opgerig. Daar was drie ribbes in sy bek tussen sy tande, en daar is vir hom gesê, ‘Staan op, eet baie vleis!’ “ Daarna het ek gesien: Kyk, daar was 'n ander dier, soos 'n luiperd. Hy het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad. Die dier het vier koppe gehad, en heerskappy is aan hom gegee. “ Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was 'n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad. Terwyl my aandag nog by die horings was, kyk, toe kom daar 'n ander klein horinkie tussen hulle uit, en drie van die vorige horings voor hom is ontwortel. Kyk, in hierdie horing was daar oë soos mense-oë en 'n mond wat grootpraat. “ Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en 'n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. 'n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die •boekrolle is oopgemaak. “Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het. “Ek het in die nagtelike visioene gesien: “Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos 'n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie. “ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’ “ Toe wou ek sekerheid kry oor die vierde dier, wat van al die ander verskil het – buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en naels van brons, wat verslind en vermorsel, en dit wat oorbly, met sy pote vertrap – en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander horing wat uitgekom het, waarvoor drie ander moes wyk, dié horing met oë en 'n mond wat grootpraat en wat groter gelyk het as die ander. Ek het gesien hierdie horing maak oorlog teen die heiliges, en hy was besig om die oorhand oor hulle te kry, totdat die Oue van Dae gekom het en 'n uitspraak gegee is ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het toe aangebreek, en die heiliges het die koninkryk in besit geneem. “ So het hy gesê, “ ‘Die vierde dier beteken: 'n Vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat van al die koninkryke verskil. Dit sal die aarde verslind en dit vertrap en vermorsel. Die tien horings beteken: Uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan. 'n Ander een sal ná hulle opstaan; hý sal verskil van die voriges, en hy sal drie konings verneder. Woorde gerig teen die Hoogste sal hy uitspreek, en die heiliges van die Allerhoogste sal hy teister. Hy sal poog om feestye en die wet te verander, en die heiliges sal in sy hand gegee word vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. Maar die regbank sal sitting neem, en sy heerskappy sal hulle wegneem om dit te vernietig en te verdelg, tot die einde toe. Die koningskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees.’ “Hier eindig die weergawe. “Ek, Daniël – my gedagtes het my baie verskrik, en my gelaatskleur het verander, maar ek het die weergawe in my hart bewaar. ” In die derde regeringsjaar van koning Belsasar is daar aan my, Daniël, 'n visioen geopenbaar, ná die een wat aan die begin aan my geopenbaar is. In die visioen het ek myself in die vestingstad Susan, in die Elamprovinsie, gesien. Ek sien toe in die visioen dat ek langs die Ulaikanaal is. Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n ram met twee horings wat voor die kanaal staan. Die twee horings was lank, maar die een was langer as die ander, en die langste een het laaste uitgekom. Ek het gesien die ram stoot na die weste, die noorde en die suide, en geen dier kon voor hom standhou nie. Niemand kon iets uit sy mag red nie. Hy het gedoen wat hy wou en hom groot voorgedoen. Terwyl ek nog daaroor nadink, kyk, toe kom 'n bokram uit die weste oor die oppervlak van die hele aarde aan, sonder om aan die grond te raak. Die bok het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad. Hy kom toe tot by die ram met die twee horings wat ek voor die kanaal sien staan het. Toe storm hy met geweldige woede op hom af. Ek het gesien hoe hy tot by die ram kom. Hy was briesend kwaad vir hom, en het die ram getref. Hy het sy twee horings afgebreek, en daar was geen krag in die ram om voor hom staande te bly nie. Hy het hom teen die grond gegooi en hom vertrap. Daar was niemand wat die ram uit sy mag kon red nie. Die bokram het homself besonder groot voorgedoen. Maar toe hy sterk geword het, het die groot horing afgebreek. Vier opvallende horings het in die plek daarvan gegroei, na die vier windrigtings van die hemel. Uit een van hulle het 'n enkele klein horing uitgekom, maar dit het uitermate groot gegroei na die suide, na die ooste en na die Sieraad. Dit het groot geword tot by die hemelse leër, dit is die sterre, en dit het van die sterre op die aarde laat val en hulle vertrap. Die horing het hom selfs teen die Bevelvoerder van die leër verhef. Van Hom is die gereelde offer weerhou, en die plek van sy heiligdom is omvergewerp. Daar sal 'n ander offerdiens in die plek van die gereelde offer ingestel word as 'n daad van opstand. Hy sal die waarheid teen die grond gooi, en suksesvol wees in sy optrede. Ek het een van die •heiliges hoor praat. 'n Ander heilige vra toe vir iemand, vir die een wat praat: “Hoe lank sal dit duur – dit wat in die visioen openbaar is oor die gereelde offer en die verwoestende daad van opstand, en oor die oorgawe van sowel die heiligdom as die offerdiens om vertrap te word?” Hy het vir my gesê: “Tot tweeduisend driehonderd aande en oggende – dan sal 'n heiligdom sy regmatige plek kry. ” Terwyl ek, Daniël, die visioen sien, en dit probeer verstaan, staan daar skielik voor my iemand wat soos 'n man lyk. Ek hoor toe die stem van 'n mens oor die Ulai wat roep en sê: “Gabriël, laat hierdie een die verskyning verstaan.” Hy het nader gekom na die plek waar ek staan. Toe hy nader kom, is ek deur vrees oorweldig, en het met my gesig teen die grond neergeval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mensekind, dat die visioen geld vir die tyd van die einde.” Terwyl hy met my praat, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond, maar hy het my aangeraak, my weer op my plek laat staan, en gesê: “Kyk, ek gaan aan jou bekend maak wat sal gebeur aan die einde van die vervloeking, want dit verwys na die vasgestelde tyd aan die einde. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië. En die harige bokram is die koning van Jawan. Die groot horing tussen sy oë, dit is die eerste koning. Die een wat gebreek is, in die plek waarvan vier opgestaan het, beteken: Vier koninkryke sal uit die nasie opstaan, maar nie met dieselfde krag nie. “Aan die einde van hulle heerskappy, as die oortreders volle geleentheid gehad het, sal 'n koning met 'n ongenaakbare gesig opstaan, een bedrewe in knoeiery. Hy sal groot mag hê, maar nie deur eie krag nie. Hy sal ongehoorde verwoesting aanrig, en voorspoedig wees in wat hy doen. Hy sal sterkes en die volk van die heiliges vernietig. Deur sy vernuf sal hy slaag met die bedrog wat hy aanrig. In sy hart is hy vol eiewaan, en onverhoeds sal hy baie mense vernietig. Selfs teen die Vors van vorste sal hy opstaan, maar sonder mensehand sal hy vernietig word. “Die openbaring in verband met die aand en die oggend waaroor daar gepraat is, dit is waar. En jy, hou die visioen geheim, want daar moet nog baie dae verloop.” Ek, Daniël, was uitgeput en dae lank ongesteld. Toe het ek opgestaan en die koning se werk gedoen. Ek was verslae oor die openbaring, en kon dit nie begryp nie. In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die •boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in 'n roukleed en met stof op die kop. Ek het gebid tot die Here, my God; ek het bely en gesê: “Ag, my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings. En ons het nie geluister na u diensknegte die profete nie, hulle wat in u Naam gepraat het met ons konings, ons •hoë amptenare, ons voorouers en met die hele volk van die land. By U, my Heer, is daar regverdige optrede, en by ons is daar gesigte vol skaamte, soos dit vandag is – by die manne van Juda, by die inwoners van Jerusalem en by die hele Israel, dié wat naby is en dié wat ver is in al die lande waarheen hulle verdryf is op grond van die ontrou wat hulle teen U gepleeg het. Here, by ons is daar gesigte vol skaamte – by ons konings, ons hoë amptenare en ons voorouers, omdat ons teen U gesondig het; by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis. Omdat ons teen Hom in opstand was en nie geluister het na die stem van die Here ons God, deur sy wette te volg wat Hy aan ons voorgehou het deur sy diensknegte, die profete nie; en omdat die hele Israel u wet oortree en afgewyk het deur nie te luister na u stem nie, het die vloek en die eed wat geskryf staan in die Wet van Moses, die dienaar van God, teen ons losgebreek. Ja, ons het teen Hom gesondig, en Hy het sy woorde gestand gedoen wat Hy gespreek het oor ons en ons rigters wat ons moes rig, deur 'n groot onheil oor ons te bring – iets wat onder die ganse hemel nog nie gebeur het, soos daar wel in Jerusalem gebeur het nie. Soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, het al hierdie onheil oor ons gekom, maar ons het die guns van die Here ons God nie gesoek deur van ons sondeskuld weg te draai en ag te slaan op u waarheid nie. Die Here het met die onheil gereed gestaan, en het dit oor ons gebring. Die Here ons God is immers regverdig in alles wat Hy doen. Maar ons het nie na sy stem geluister nie. “ En nou, my Heer, ons God, U wat u volk uit Egipteland uitgelei het met 'n sterk hand en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – ons het gesondig, ons is skuldig. My Heer, laat, in ooreenstemming met al u weldade, u toorn en woede asseblief wegdraai van u stad Jerusalem, u heilige berg. Want dit is deur ons sonde en die sondeskuld van ons voorouers dat Jerusalem en u volk 'n bespotting geword het vir almal om ons. Daarom, ons God, luister na die gebed van u dienskneg en na sy smeekbede, en laat, ter wille van my Heer, u aangesig skyn oor u heiligdom, wat verwoes lê. Draai u oor, my God, en hoor! Maak u oë oop en sien ons verwoeste plekke raak en ook die stad waaroor u Naam uitgeroep is! Want nie op grond van ons regverdige dade lê ons ons smeekbede voor u nie, maar op grond van u oorvloedige barmhartigheid. My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.” Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die Here, my God, te lê, ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. Aan die begin van jou smeekgebed het daar 'n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar, want jy is baie geliefd. Verstaan die woord en kry insig in die openbaring: “ Sewentig weke is bepaal oor jou volk en jou heilige stad: om die daad van opstand tot 'n einde te bring, om sondes die volle maat te laat bereik, om sondeskuld te versoen, en ewige geregtigheid te bring, om visioen en profeet te bekragtig, en om wat besonder heilig is, te salf. “ Jy moet weet en verstaan: Vandat 'n woord uitgegaan het om Jerusalem te herstel en op te bou, tot met die koms van 'n gesalfde, 'n leier, sal sewe weke verloop. Twee-en-sestig weke lank sal die stad weer opgebou word, met pleine en gragte, maar dit sal tye van verdrukking wees. Ná twee-en-sestig weke sal die gesalfde uitgewis word, en daar sal vir hom niks oorbly nie. En wat die stad en die heiligdom betref: Die volk van 'n leier wat kom, sal dit verwoes, maar sy einde sal deur 'n vloed wees. Tot die einde sal daar oorlog wees; verwoesting is vooruitbepaal. En hy sal vir een week 'n bindende ooreenkoms aangaan met die menigtes. In die middel van die week sal hy die slagoffer en •graanoffer laat ophou, en by die vlerk van verfoeilike afgodsbeelde sal daar een wees wat verwoes, totdat finale vernietiging en wat vooruitbepaal is, oor die verwoester losbars.” In die derde regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, is 'n woord geopenbaar aan Daniël, wat Beltsasar genoem is. Die woord is betroubaar en gaan oor 'n groot stryd. Hy het die woord verstaan en insig gekry in die openbaring. “ In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Aangename kos het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het by my mond nie gekom nie. Ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke verby was. Op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand was ek by die oewer van die groot rivier, dit is die Hiddekel. Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n man geklee in linne, en sy heupe is omgord met goud van Ufas. Sy liggaam was soos •chrisoliet en sy gesig het gelyk soos weerlig, terwyl sy oë soos fakkels van vuur was, en sy arms en voete soos gepoleerde brons geskitter het. Die geluid van sy woorde was soos die geluid van 'n menigte. Ek, Daniël, het alleen die verskyning gesien; die manne wat saam met my was, het nie die verskyning gesien nie. Groot vrees het hulle egter oorval, en hulle het gevlug om weg te kruip. Ek het alleen agtergebly en het hierdie groot verskyning gesien. Daar was geen krag in my oor nie, en my gelaatskleur het verander na doodsbleek. Ek kon nie my kragte herwin nie. Ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond. Kyk, 'n hand het my aangeraak en my geskud tot ek op my knieë en handpalms was. Toe sê hy vir my, ‘Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.’ En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan. Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde. Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een-en-twintig dae lank teengestaan. Maar kyk, Migael, een van die belangrikste vorste, het my te hulp gekom, en ek was oorbodig daar by die konings van Persië. Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.’ “Terwyl hy in dié trant met my praat, het ek my gesig na die grond gerig en stom geword. Kyk, toe het een met dieselfde voorkoms as mensekinders my lippe aangeraak. Daarna het ek my mond oopgemaak, gepraat en vir hom wat voor my staan, gesê, ‘My heer, as gevolg van die verskyning het 'n lamheid my oorweldig, en ek kon nie my kragte herwin nie. Hoe kon hierdie dienskneg van my heer dan met hierdie heer van my praat? En ek – van nou af bly daar geen krag oor in my nie; geen asem is meer oor in my nie.’ “Die een wat soos 'n mens gelyk het, het my weer aangeraak en my weer krag gegee. Hy het gesê, ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’ “Terwyl hy met my praat, het ek my krag herwin en gesê, ‘My heer kan maar praat, want u het my versterk.’ “Hy sê toe, ‘Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet weldra terugkeer om te veg teen die vors van Persië. En wanneer ek daar uitkom, kyk, dan kom die vors van Jawan. Ek sal jou egter inlig oor wat opgeteken is in die geskrif van die waarheid. Daar is nie een wat my kragdadig ondersteun teen hierdie vorste nie, behalwe julle vors Migael. “ ‘ Wat my betref, in die eerste regeringsjaar van Darius, die Meder, het ek vasgestaan as 'n ondersteuner, as 'n vesting vir hom. En nou deel ek jou die waarheid mee: Kyk, nog drie konings gaan opstaan vir Persië. Die vierde sal groter rykdom byeenbring as al die ander. En wanneer hy deur sy rykdom sterk word, sal hy almal aanhits teen die koninkryk van Jawan. Dan sal 'n heldhaftige koning opstaan. Hy sal met baie mag heers en doen wat hy wil. Maar hy sal pas 'n staanplek hê, dan sal sy koninkryk opgebreek en verdeel word in die vier windstreke van die hemel. Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie wees soos die magsgebied waaroor hy geheers het nie, want sy koninkryk sal opgebreek word en, met uitsluiting van sy nageslag, aan ander behoort. “ ‘Die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy •aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal 'n heerskappy met baie mag wees. Ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap sluit, en die koning van die Suide se dogter sal na die koning van die Noorde kom om die ooreenkoms te bekragtig. Maar sy sal nie die militêre mag behou nie. Die koning van die Suide se mag sal ook nie standhou nie. Sy sal in dié tyd oorgelewer word – sy en haar gevolg, sowel as hy wat haar verwek het, en hy wat haar ondersteun het. Dan sal een van die spruite uit haar wortels in sy plek opstaan. Hy sal teen die leër optrek en die vesting van die koning van die Noorde binnedring; hy sal teen hulle optree en hulle oorweldig. Ook hulle gode met hulle gegote beelde en hulle kosbare voorwerpe – silwer en goud – sal hy wegvoer na Egipte; en jare lank sal hy die koning van die Noorde met rus laat. Dié sal dan die koninkryk van die koning van die Suide binneval, maar hy sal na sy land terugkeer. “ ‘Sy seuns sal vir oorlog gereedmaak en 'n menigte groot leërs byeenbring. Dié menigte sal die land binneval; hulle sal binneval, instroom en oorstroom, dan terugval, en daarna deurdring tot by sy vesting. Die koning van die Suide sal briesend kwaad wees. Hy sal uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg. Dié sal weer 'n groot menigte op die been bring, maar die menigte sal in sy teenstander se hand oorgegee word. Wanneer die menigte uit die weg geruim is, sal die koning van die Suide verwaand raak en tienduisende neerwerp, maar nie sterk bly nie. “ ‘Dan sal die koning van die Noorde terugkeer en 'n menigte op die been bring, meer as die eerste keer. Ná verloop van tyd, ná jare, sal hy beslis kom met 'n groot leër en met baie toerusting. In daardie tydperke sal baie in opstand kom teen die koning van die Suide. Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om 'n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot 'n val kom. Die koning van die Noorde sal kom, 'n beleëringswal ophoop en 'n versterkte stad inneem. Die magte van die Suide sal nie standhou nie, ook nie die keurtroepe nie, en daar sal geen krag meer wees om weerstand te bied nie. Hy wat teen die Suide optrek, sal doen net wat hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie. Hy sal hom vestig in die land van die Sieraad en volslae vernietiging sal in sy hand wees. Hy sal hom voorberei om met die volle mag van sy koninkryk te kom, maar sal tog 'n ooreenkoms aangaan en 'n dogter van een van sy vroue aan die koning van die Suide gee om die koninkryk te vernietig. Maar dit sal nie slaag nie, en dit sal nie tot sy voordeel strek nie. Dan sal hy sy aandag vestig op die eilande en baie daarvan inneem, maar 'n •aanvoerder sal sy onbeskaamdheid vir hom tot 'n einde bring; sy onbeskaamdheid sal hy hom vergeld. Daarna sal die koning van die Noorde draai teen die vestings in sy eie land, maar hy sal tot 'n val kom. Hy sal val en nie meer gevind word nie. “ ‘ In sy plek sal iemand opstaan wat 'n belastinggaarder rondstuur om die koninklike weelde in stand te hou; maar binne enkele dae sal hy verpletter word, egter nie deur toorn of deur oorlog nie. “ ‘ Dan sal 'n veragtelike persoon in sy plek opstaan aan wie die mense geen koninklike waardigheid toegeken het nie. Hy sal onverhoeds kom en op 'n slinkse wyse die koningskap oorneem. Die instromende magte sal voor hom weggespoel en verpletter word, selfs die leier van die verbond. Nadat 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, sal hy bedrog pleeg; so sal hy met min mense opgang maak en sterk word. Hy sal onverwags in die ryk dele van 'n provinsie ingaan en doen wat sy vaders en grootvaders nie gedoen het nie: Buit, geroofde goed en besittings sal hy vir hulle uitdeel. Teen versterkte stede sal hy sy planne beraam, maar net vir 'n tyd lank. “ ‘Hy sal krag en moed bymekaarskraap om met 'n groot leër teen die koning van die Suide op te trek. Die koning van die Suide sal gereedmaak vir die geveg met 'n groot en besonder sterk leër; maar hy sal nie staande bly nie, want hulle sal planne teen hom beraam. Hulle wat van sy kos eet, sal hom breek; sy leër sal oorweldig word, en baie gewondes sal val. En die twee konings, hulle albei, sal kwaad beplan in hulle harte, en terwyl hulle aan dieselfde tafel is, mekaar belieg. Maar dit sal nie slaag nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. Die koning van die Noorde sal terugkeer na sy land met baie besittings, maar sy hart sal teen die heilige verbond gerig wees. So sal hy optree en terugkeer na sy land. “ ‘ Op die vasgestelde tyd sal hy weer na die Suide gaan, maar dit sal die tweede keer nie wees soos die eerste keer nie. Skepe van die Kittiërs sal teen hom opruk, en hy sal bang word. Hy sal omdraai en 'n vervloeking uitspreek teen die heilige verbond, en dienooreenkomstig optree. Hy sal terugkeer en aandag gee aan hulle wat die heilige verbond versaak het. Strydmagte deur hom byeengebring, sal opstaan en die heiligdom, die vesting, ontheilig, die gereelde offer afskaf en die verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, oprig. Dié wat skuldig staan teenoor die verbond, sal hy met slinkse woorde afvallig maak; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied. Die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring, maar hulle sal struikel deur die swaard en vlamme, deur gevangenskap en plundering, vir 'n tyd lank. Terwyl hulle struikel, sal hulle 'n klein bietjie hulp ontvang, maar baie sal slinks by hulle aansluit. Sommige van die verstandiges sal struikel. Dit is om hulle te louter, uit te sif en te suiwer tot die eindtyd; want dit sal steeds op die vasgestelde tyd wees. “ ‘ Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal homself verhef en hom groot waan teen elke god; en teen die God van die gode sal hy verstommende dinge kwytraak. Hy sal voorspoedig wees totdat die vervloeking tot 'n einde kom, want dit is vooruitbepaal; dit sal uitgevoer word. Op die gode van sy voorouers sal hy geen ag slaan nie; op die geliefde van vroue of op enige ander god sal hy nie ag slaan nie, want bo hulle almal sal hy hom groot waan. In plaas van aan hulle, sal hy aan die god van vestings eer bewys. Aan die god wat sy voorouers nie geken het nie, sal hy eer bewys met goud, silwer, edelstene en ander kosbaarhede. Hy sal optree teen versterkte stede met die hulp van 'n vreemde god. Wie aan hom erkenning gee, sal hy oorlaai met eerbewyse. Hy sal hulle laat heers oor baie, en grond uitdeel as beloning. “ ‘ Maar in die eindtyd sal die koning van die Suide met hom kragte meet, en die koning van die Noorde sal hom bestorm met strydwaens, perderuiters en baie skepe. Hy sal lande binneval, instroom en oorstroom. Hy sal die land van die Sieraad binneval, en baie sal val. Maar die volgende sal vrykom uit sy hand: Edom, Moab en die belangrikstes van die Ammoniete. Hy sal sy hand uitstrek teen lande. Vir Egipteland sal daar nie wegkomkans wees nie. Hy sal beheer hê oor die skatte van goud en silwer, ja, oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl Libiërs en Kussiete sy gevolg sal wees. Gerugte uit die ooste en noorde sal hom verskrik, en hy sal met groot woede uittrek om baie te verdelg en aan volledige vernietiging oor te gee. Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Sieraad, maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal geen helper vir hom wees nie. “ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal 'n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert 'n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die •boekrol opgeskryf is. Baie van hulle wat slaap in die stof van die aarde, sal wakker word – sommige vir die ewige lewe, en ander tot skande, tot ewige afsku. Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd. “ ‘En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.’ ” Ek, Daniël, het gesien: Kyk, daar staan twee ander, een aan hierdie kant op die wal van die stroom, en een aan daardie kant op die wal van die stroom. Die een sê toe vir die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was: “Hoe lank nog voor die einde van die verstommende gebeure aanbreek?” Ek hoor toe die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was, sê, terwyl hy sy regter- en sy linkerhand ophef na die hemele en sweer by die Ewig Lewende: “Dit is vir 'n vasgestelde tyd, tye en 'n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot 'n einde kom, sal al hierdie dinge ophou.” Ek het dit self gehoor, maar nie verstaan nie. Toe vra ek: “My heer, wat is die uiteinde hiervan?” Daarop het hy geantwoord: “Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. Vanaf die tyd dat die gereelde offer afgeskaf word, en vanaf die oprigting van 'n verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, sal 'n duisend tweehonderd-en-negentig dae verloop. Gelukkig is hy wat geduldig wag en duisend driehonderd vyf-en-dertig dae bereik. En jy, gaan voort tot die einde! Jy sal rus en daarna opstaan vir jou bestemming aan die einde van die dae.” Dit is die woord van die Here aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel. Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het. Die Here het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou 'n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die Here af.” Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Die Here sê toe vir hom: “Noem hom Jisreël, want nog 'n klein rukkie, dan roep Ek die huis van Jehu tot verantwoording oor die bloedbad by Jisreël. Ek gaan 'n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. Op daardie dag sal Ek die boog van Israel breek op die vlakte van Jisreël.” Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan 'n dogter. Die Here sê toe vir hom: “Noem haar Lo-Rugama, want Ek gaan My nie langer ontferm oor die huis van Israel nie, ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie. Maar oor die huis van Juda sal Ek my ontferm. Ek sal hulle verlos deur die Here hulle God; Ek sal hulle nie deur boog en swaard en oorlogstuig, deur perde en ruiters verlos nie.” Toe sy Lo-Rugama gespeen het, het sy swanger geword en geboorte gegee aan 'n seun. Die Here sê toe: “Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek is nie ‘Ek Is’ vir julle nie.” “Maar die kinders van Israel sal so veel wees soos die sand van die see wat nie afgemeet en getel kan word nie. Op die plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is Lo-Ammi,’ sal vir hulle gesê word, ‘Kinders van die lewende God.’ Die kinders van Juda en die kinders van Israel sal saamkom, en vir hulle een hoof aanstel. Hulle sal uit die grond opskiet, want groot is die dag van Jisreël. Sê vir julle broers, ‘Ammi, ’ en vir julle susters: ‘Rugama. ’ ” “ Kla julle ma aan, kla haar aan, want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie. Laat sy die tekens van hoerery van haar gesig verwyder, en die tekens van egbreuk tussen haar borste – anders sal Ek haar kaal uittrek, en haar laat soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, haar as 'n dor land laat lê en haar van dors laat sterf. Oor haar kinders sal Ek my nie ontferm nie, want hulle is hoerkinders. Ja, hulle ma het gehoereer; sy wat met hulle swanger was, het haar skandelik gedra. Sy het immers gesê, ‘Ek wil agter my minnaars aanloop, hulle wat my brood en water, my wol en vlas, my olie en drank vir my gee.’ “ Daarom, kyk, Ek gaan haar pad met doringtakke afsper, 'n muur om haar bou, sodat sy haar paaie nie vind nie, sodat sy agter haar minnaars aangaan, maar hulle nie bereik nie, hulle soek, maar hulle nie vind nie. Dan sal sy sê, ‘Ek wil teruggaan na my eerste man, want toe was dit vir my beter as nou.’ Maar sy het nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring, •nuwe wyn en olie gegee het nie; silwer het ek vir haar in oorvloed gegee, ook goud. Hulle het dit vir Baäl gebruik. Daarom, Ek gaan weer my koring terugvat in die oestyd, my nuwe wyn in die feestyd. Ek gaan my wol en vlas, wat bedoel is om haar naaktheid te bedek, wegruk. “ Daarom gaan Ek haar skaamdele ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand wegruk nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde: haar pelgrimsfeeste, haar nuwemaansfeeste en haar Sabbatte, ja, elkeen van haar feesgeleenthede. Ek gaan haar wingerde en haar vyeboorde verwoes, waarvan sy gesê het, ‘Dit is 'n geskenk aan my wat my minnaars my gegee het.’ Ek sal dit 'n ruigte maak, en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan van haar rekenskap eis oor die feesdae vir die Baäls waarop sy vir hulle geoffer het, toe sy haar versier het met ringe en juwele, en agter haar minnaars aangeloop het. Maar My het sy vergeet,” is die uitspraak van die Here. “ Daarom, kyk, Ek gaan haar oorhaal, haar na die woestyn laat gaan, en mooi met haar praat. Ek sal daarna haar wingerde vir haar teruggee, en die vallei van Agor as 'n poort van hoop. Daar sal sy antwoord soos in haar jong dae, soos in die tyd toe sy uit Egipteland opgetrek het. “ Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal jy My noem, ‘my Man’. Jy sal My nie weer ‘my Baäl’ noem nie. Ek sal die name van die Baäls uit haar mond verwyder; hulle name sal nie weer in herinnering geroep word nie. “ Ek sal op daardie dag vir hulle 'n verbond sluit met die diere van die veld, die voëls van die hemel, en die diere wat op die grond kruip. Boog en swaard en oorlogstuig sal Ek in die land stukkend breek; Ek sal sorg dat hulle veilig gaan slaap. “ Ek gaan My vir altyd aan jou verloof; Ek gaan My aan jou verloof, met reg en geregtigheid, met troue liefde en ontferming as bruidsprys. Ek gaan My in trou aan jou verloof, en jy sal die Here erken. “ Op daardie dag sal Ek antwoord,” is die uitspraak van die Here. “Ek sal die hemel antwoord, en dit sal die aarde antwoord; die aarde sal die koring, die nuwe wyn en olie antwoord, en hulle sal Jisreël antwoord. “Ek gaan haar vir my in die land saai. Ek sal my ontferm oor Lo-Rugama, en vir Lo-Ammi sal Ek sê, ‘Jy is my volk,’ en hy sal sê, ‘my God.’ ” Die Here het vir my gesê: “Gaan weer, gaan bemin 'n vrou wat bemin word deur 'n vriend, en wat egbreuk pleeg; soos die Here die Israeliete liefhet, terwyl hulle na ander gode draai en van rosynekoeke hou.” Ek het haar toe vir my gehuur vir vyftien silwerstukke en 'n gomer en 'n letek gars. Ek het vir haar gesê: “Vir 'n lang tyd moet jy by my bly. Jy mag nie hoereer nie, en jy mag nie aan 'n man behoort nie. Ek sal ook so teenoor jou optree.” Want vir 'n lang tyd sal die Israeliete sonder 'n koning en •hoë amptenare, sonder offers en gedenkstene, sonder efod en huisgode moet bly. Daarna sal die Israeliete terugkeer en die Here, hulle God, soek, en Dawid, hulle koning. Ja, hulle sal bewend na die Here gaan, en na sy goedheid in die laaste dae. Luister na die woord van die Here, Israeliete, want die Here het 'n regsaak teen die inwoners van die land: “Omdat daar geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land is nie, het meineed en bedrog, moord, diefstal en egbreuk toegeneem, en bloedbad volg op bloedbad. Daarom verdor die land, en kwyn almal weg wat daarin woon saam met die diere van die veld en die voëls van die hemel. Selfs die visse in die waters word bymekaargemaak. “ Tog moet 'n mens nie aankla en iemand teregwys nie, want dit is jou mense met wie Ek eintlik die stryd voer, priester. Jy gaan vandag struikel; ook profete sal vannag saam met jou struikel, en Ek gaan jou moeder laat omkom. “ My volk kom om weens 'n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. “ Hoe meer hulle geword het, hoe meer het hulle teen My gesondig. Hulle aansien sal Ek in skande verander. Op die sonde van my volk teer hulle, na hulle sondeskuld hunker hulle. Dit sal met die priesters gaan soos met die volk: Ek gaan van hulle rekenskap eis oor hulle optrede, hulle vergeld vir hulle dade. Hulle eet, maar sal nie versadig word nie; hulle hoereer, maar sal nie meer word nie. Omdat hulle die Here verlaat het om hulle toe te wy aan hoerery; en omdat wyn en •nuwe wyn hulle verstand benewel, doen my volk navraag by 'n stuk hout; sy wandelstok moet vir hom inligting gee. Omdat 'n gees van hoerery hulle laat dwaal, hoereer hulle weg van hulle God af. Op die bergtoppe slag hulle en op die heuwels offer hulle, onder eikebome, storaksbome en terebintbome, omdat daar goeie skaduwee is. Daarom hoereer julle dogters, en pleeg julle skoondogters egbreuk. Ek sal nie julle dogters tot verantwoording roep omdat hulle hoereer, of julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want die priesters gaan eenkant toe met prostitute, en saam met tempelprostitute slag hulle offers. 'n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde. “As jy hoereer, Israel, moet Juda tog nie skuldig word nie. Julle moenie na Gilgal gaan nie, en moenie optrek na Bet-Awen nie. Moenie sweer, ‘so waar as die Here leef’ nie.” Ja, Israel is so weerbarstig soos 'n weerbarstige koei. Sal die Here hulle nou laat wei soos 'n lam in die oopte? Efraim is verbind aan afgode – laat hom met rus! Wanneer hulle drinkery ophou, hoereer hulle op groot skaal. Hulle het skande, haar skaamtelose gedrag, hartstogtelik lief. Die wind het haar in sy vleuels opgerol, hulle gaan in die skande kom oor hulle offers. “ Luister hierna, priesters; gee ag, huis van Israel; en koningshuis, gee aandag, want die oordeel is vir julle bedoel: Ja, julle het 'n wip geword vir Mispa, 'n oopgespreide vangnet op Tabor, julle het 'n diep vanggat in Sittim gegrawe. Maar Ek is 'n tugtiging vir hulle almal. “Ek ken Efraim en Israel is vir my nie verborge nie; ja, nou het jy gehoereer, Efraim, Israel het homself verontreinig.” Hulle dade laat hulle nie toe om na hulle God terug te keer nie, want 'n gees van hoerery heers in hulle midde, en hulle ken die Here nie. Israel se hoogmoed getuig openlik teen hom, en Israel en Efraim sal deur hulle sondeskuld struikel. Ook Juda het saam met hulle gestruikel. Met hulle kleinvee en beeste gaan hulle om die Here te soek, maar hulle sal Hom nie vind nie – Hy het Hom aan hulle onttrek. Teenoor die Here was hulle ontrou, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Nou gaan Hy hulle met nuwemaan verteer, saam met hulle landerye. “ Blaas die •ramshoring in Gibea, die trompet in Rama; hef die krygsgeskreeu aan in Bet-Awen! Agter jou is Benjamin! Efraim, jy gaan 'n woesteny word op die dag van straf. Onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat betroubaar is. “ Die leiers van Juda het geword soos hulle wat grenslyne verlê. Oor hulle sal Ek my gramskap uitstort soos water. Efraim is verdruk en die reg is verkrag, want hy was gretig om agter 'n nikswerd aan te loop. Maar Ek is soos 'n abses vir Efraim, soos verrotting vir die huis van Juda. Toe Efraim sy siekte bemerk en Juda sy sweer, het Efraim na Assirië gegaan, 'n afvaardiging na koning Jareb gestuur. Maar hy kan julle nie gesond maak nie, hy kan julle van die sweer nie genees nie. Want Ek is soos 'n leeu teenoor Efraim, soos 'n jong leeu teenoor die huis van Juda. Ek, ja Ek, verskeur en stap weg, Ek dra weg terwyl niemand kan red nie. Ek gaan weer terug na my plek, totdat hulle skuld bely, en my teenwoordigheid opsoek; in hulle nood sal hulle My soek. “Kom ons keer terug na die Here – want Hy is die Een wat ons verskeur het, maar Hy sal ons gesond maak; Hy het ons geslaan, maar Hy sal ons wonde verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan, sodat ons voor Hom kan lewe. Laat ons Hom ken, laat ons daarna streef om die Here te ken. So seker soos dagbreek is sy verskyning; Hy sal soos reën na ons toe kom, soos lentereën wat die grond deurnat maak.” “ Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle trou is soos 'n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn. Daarom het Ek hulle neergevel deur die profete, hulle omgebring met die woorde van my mond. My oordele verskyn soos die lig; want Ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God, eerder as •brandoffers.” “ Maar hulle het die verbond oortree soos in Adam; daar was hulle ontrou aan My. Gilead is 'n dorp van boosdoeners, hulle laat 'n spoor van bloed. Soos struikrowers wat iemand voorlê, is die priesterbende – op die pad na Sigem pleeg hulle moord; ja, hulle tree skandelik op. “In die huis van Israel het Ek iets afskuweliks gesien: Daar het die hoerery van Efraim plaasgevind, is Israel verontreinig.” Ook Juda – Hy het vir jou 'n oes bestem. “Terwyl Ek die lot van my volk verander, terwyl Ek Israel genees, kom die sondeskuld van Efraim en die booshede van Samaria aan die lig. Ja, hulle het vals opgetree: Diewe breek in, en op straat plunder rowerbendes. Hulle dink nie eers daaraan dat Ek al hulle boosheid in gedagte hou nie. Nou het hulle dade hulle ingehaal; dit lê oop en bloot voor My.” “ Met hulle boosheid verheug hulle die koning, en met hulle leuens, leiers; hulle is almal ontroues. Dit is soos 'n oond wat bly smeul, soos wanneer die bakker ophou vuurmaak, vandat die deeg geknie is totdat dit uitgerys het. Op die dag van ons koning het hulle die leiers bedwelm met die gloed van wyn; dit het die raadgewers in sy mag meegevoer. Toe hulle hulde betoon het, was hulle harte soos 'n oond, terwyl hulle 'n hinderlaag opstel. Die hele nag sluimer hulle drif; teen die môre vlam dit op soos 'n vuur. Hulle het almal gegloei soos 'n oond; hulle het hulle heersers verteer; al hulle konings het tot 'n val gekom. Daar is onder hulle nie een wat na My roep nie.” “Efraim is onder die nasies, hy word self geknie. Efraim het geword soos 'n roosterkoek wat nie omgedraai is nie. Vreemdes het sy kragte verteer, maar hy besef dit nie. Hy het ook grys geword, maar hy besef dit nie. Israel se hoogmoed getuig teen hom, maar hulle keer nie terug na die Here hulle God nie; te midde van dit alles soek hulle Hom nie op nie. Efraim het geword soos 'n duif – dom en sonder verstand. Hulle het vir Egipte gekoer, maar na Assirië gevlieg. Wanneer hulle vlieg, sprei Ek my vangnet oor hulle uit. Soos voëls van die hemel sal Ek hulle neertrek. Ek sal hulle vang soos iemand wat vir die swerm luister. Wee hulle, want hulle vlug weg van My af. Verwoesting wag op hulle, want hulle het teen My oortree. Ek wou hulle verlos, maar hulle het leuens oor My vertel. Hulle roep nie uit die hart na My om hulp nie; want hulle kerm op hulle lêplekke; oor koring en •nuwe wyn sny hulle hulleself stukkend – so draai hulle teen My. Ek is die Een wat hulle geleer het. Ek het hulle arms sterk gemaak, maar teen My beplan hulle kwaad. Hulle keer terug na wat nutteloos is; hulle het soos 'n slap boog geword. Hulle leiers sal deur die swaard val oor die vervloeking wat hulle uitgespreek het. Dit sal hulle bespotting wees in Egipteland. “Bring die •ramshoring na jou mond! Daar sirkel 'n arend bo die huis van die Here, omdat hulle my verbond oortree het, en teen my wet in opstand is. Na My roep hulle om hulp, ‘My God, ons, Israel, ken U!’ Israel het die goeie verwerp, 'n vyand sal hom agtervolg. Daardie manne het konings aangestel, maar sonder my goedkeuring. Hulle het leiers aangewys, maar Ek ken hulle nie. Met hulle silwer en hulle goud het hulle vir hulle afgode gemaak – net sodat dit vernietig kan word.” Hy het jou kalf verwerp, Samaria! “My toorn het teen hulle ontbrand. Hoe lank nog sal hulle nie rein kan wees nie – as hulle dan deel is van Israel. En daardie ding, 'n ambagsman het dit gemaak; dit is nie 'n god nie. Ja, die kalf van Samaria sal houtspaanders word. “ As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As daar geen are aan 'n koringhalm is nie, lewer dit geen koringkorrels nie. As dit dalk iets lewer, sal vreemdes dit insluk. Israel is ingesluk; nou het hulle onder die nasies geword soos 'n stuk gereedskap wat geen waarde meer het nie; want hulle het opgetrek na Assirië. Efraim is 'n eensame wildedonkie: Hulle het ywerig vriende gewerf. Selfs al werf hulle vriende onder die nasies – Ek gaan hulle nou bymekaar jaag, en hulle sal begin wegkwyn onder die las van die koning van vorste. “ Toe Efraim meer altare gebou het, was dit om te sondig; dit het vir hom altare geword om mee te sondig! Al skryf Ek vir hom my wet tienduisend maal neer, dit word as iets vreemds gereken.” Hulle slag offers vir die genot – vleis, sodat hulle kan eet. Die Here, Hy aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap eis oor hulle sondes. Wat hulle betref, na Egipte sal hulle terugkeer. “Toe Israel sy Maker vergeet het, het hy paleise gebou; en Juda het die versterkte stede meer gemaak. Maar Ek gaan vuur slinger teen sy stede, en dit sal sy vestings verteer. ” Moenie vrolik wees nie, Israel, moenie juig soos die volke nie, want jy het van jou God af weg hoereer; jy was lief vir hoereloon op al die dorsvloere vir koring. Die dorsvloer en parskuip sal hulle nie voed nie, en •nuwe wyn sal daarin ontbreek. Hulle sal nie in die land van die Here bly nie, maar Efraim sal na Egipte terugkeer en in Assirië sal hulle •onrein kos eet. Hulle sal nie vir die Here wyn uitgiet nie, en hulle sal nie vir Hom hulle offers aanbied nie. Soos kos van mense wat rou, sal dit vir hulle wees – almal wat daarvan eet, sal hulleself verontreinig. Ja, hulle kos sal net vir hulle eie kele wees, dit sal nie in die huis van die Here kom nie. Wat gaan julle doen in die feestyd, in die tyd van die pelgrimsfees vir die Here? Want kyk, dié wat aan die verwoesting ontkom – Egipte sal hulle bymekaarmaak en Moof sal hulle begrawe. Hulle kosbaarhede van silwer – brandnetels sal dit in besit neem; sydissels sal in hulle tente wees. Die dae van afrekening het aangebreek; die dae van vergelding het gekom – Israel sal dit ervaar. Jy sê: “Die profeet is 'n gek, die man met die gees is waansinnig!” Ja, dit is oor die omvang van jou sondeskuld en omdat die vyandigheid so groot is. 'n Profeet is die een wat saam met my God waak oor Efraim; maar die net van die voëlvanger is op al sy paaie; daar is vyandigheid in die huis van sy God. Hulle het uiters verdorwe opgetree soos in die dae van Gibea. Hy gaan hulle sondeskuld in herinnering roep, Hy gaan rekenskap eis oor hulle sondes. “ Soos druiwe in die woestyn het Ek Israel gevind. Soos die voorvye aan 'n vyeboom in sy eerste drag het Ek julle voorouers gesien. Maar hulle het by Baäl-Peor aangekom, hulleself aan die skandelike afgod gewy, en net so walglik geword soos dit waarvoor hulle lief is. “ Efraim, soos 'n voël sal hulle aansien wegvlieg – daar sal geen geboorte, geen swangerskap en geen bevrugting wees nie. Selfs as hulle hulle kinders grootmaak, sal Ek hulle kinderloos maak; geen mens sal oorbly nie. Ja, wee hulle ook as Ek My aan hulle onttrek. “ Efraim, ek het hom gesien as 'n jong palm geplant in 'n weiveld. Maar Efraim sal sy kinders moet uitlewer aan 'n moordenaar.” Gee vir hulle, Here, wat U wil gee; gee vir hulle kinderlose moederskote en verskrompelde borste. “ Al hulle boosheid het in Gilgal begin, ja, daar het Ek 'n weersin in hulle gekry. Oor die boosheid van hulle dade gaan Ek hulle uit my huis verdryf; Ek sal hulle nie verder liefhê nie. Al hulle leiers is opstandig. “Efraim is getref, hulle wortels het verdroog, hulle sal nie enige vrug dra nie. Selfs as hulle kinders verwek, sal Ek dit wat so waardevol is in hulle moederskoot, ombring.” My God verwerp hulle, omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Hulle sal swerwers wees onder die nasies. Israel was 'n welige wingerdstok; so ook sy vrugte wat hy gedra het. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe meer altare het hy opgerig. Hoe beter dit met sy land gegaan het, hoe mooier het hulle die gedenkstene gemaak. Hulle harte is vals – nou sal hulle boet. Die Here self gaan hulle altare afbreek, hulle gedenkstene verwoes. Ja, nou sê hulle: “Ons het nie 'n koning nie, omdat ons nie vir die Here ontsag gehad het nie. En die koning – wat sou hy vir ons kon doen?” Hulle praat maar net. Hulle sweer vals wanneer hulle 'n ooreenkoms sluit. Maar reg sal geskied so seker as wat giftige plante opslaan in die slote in die veld. Oor die kalf van Bet-Awen is die inwoners van Samaria besorg. Ja, sy volk treur oor hom, sy afgodspriesters kerm oor hom, oor sy aansien, omdat dit van hom weggeneem is. Hy self sal ook na Assirië geneem word as geskenk vir koning Jareb. Skaamte sal Efraim oorval, en Israel sal beskaamd staan oor sy planne. Samaria sal vernietig word, haar koning sal soos 'n houtsplinter op die water wees. Die offerhoogtes van Awen, die sonde van Israel, sal uitgedelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare groei. Dan sal hulle vir die berge sê, “Bedek ons!” en vir die heuwels, “Val op ons!” “ Sedert die dae van Gibea het jy gesondig, Israel. Hulle het daarmee volgehou. Sal die oorlog teen die kwaadwilliges hulle dan nie in Gibea tref nie? Omdat Ek so besluit het, gaan Ek hulle 'n les leer: Nasies sal teen hulle saamtrek omdat hulle verbind bly aan hulle twee sondes. “ Efraim was 'n geleerde vers wat daarvan gehou het om koring uit te trap. Maar Ek het oor haar mooi nek gestreel en besluit: Ek gaan Efraim inspan; Juda moet ploeg; Jakob moet vir homself die grond eg. Ek het gesê, ‘Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.’ Julle het goddeloosheid ingeploeg; onreg is wat julle geoes het; julle het die vrug van leuens geëet. “Omdat jy op jou beleid vertrou, op jou baie krygshelde, sal oorlogsrumoer teen jou volk opklink, en al jou versterkte stede sal verwoes word. Soos Salman Bet-Arbel verwoes het op die dag van oorlog – ma's is saam met kinders te pletter geslaan – net so gaan hy met julle maak in Bet-El, oor julle verskriklike boosheid. Teen dagbreek sal die koning van Israel al heeltemal vernietig wees.” “ Toe Israel 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep. Toe daar later net so na hulle geroep is, het hulle van My af weggegaan. Hulle het vir die Baäls offers geslag, vir afgodsbeelde die rook van offers laat opstyg. “ Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle in my arms geneem, maar hulle wou nie erken dat Ek hulle versorg nie. “Met menslike bande het Ek hulle nadergetrek, met die toue van liefde. Ek was vir hulle soos dié wat die juk lig wat teen hulle kake druk. Ek het na Efraim afgebuk, hom gevoed. “ Hy sal nie na Egipteland teruggaan nie, maar Assirië, dié sal sy koning wees; want hulle het geweier om hulle te bekeer. Die swaard sal deur sy stede gaan en sy orakelpriesters uitroei; dit sal hulle vernietig oor die raad wat hulle gegee het. My volk sal opgehang word vir sy afvalligheid, en na die juk sal hulle hom roep, 'n juk wat glad nie gelig sal word nie. “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel? Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My. Ek sal nie in my brandende toorn optree nie; Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie; want Ek is God, nie 'n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” Hulle sal die Here volg. Soos 'n leeu sal Hy brul; wanneer Hy brul, sal kinders bewend van die see af kom. Hulle sal bewend aankom soos voëls uit Egipte, en soos 'n duif uit die land Assirië. “Ek sal hulle in hulle huise laat woon,” is die uitspraak van die Here. “Efraim het My omring met leuens, en die huis van Israel met bedrog. Juda is steeds bandeloos teenoor God, maar teenoor die heiliges is hy getrou. Efraim pas die wind op, hy loop heeldag agter die oostewind aan. Al wat hy vermeerder, is leuens en verwoesting. Met Assirië sluit hulle 'n verdrag, maar olie word na Egipte gestuur.” Die Here het 'n regsaak teen Juda, en Hy gaan Jakob tot verantwoording roep oor sy optrede; Hy gaan hom vergeld volgens sy dade. In die moederskoot het hy al sy broer aan die hakskeen vasgehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Hy het met die Engel geworstel en het oorwin; want hy het gehuil en Hom om genade gesmeek: “By Bet-El sal Hy hom ontmoet, daar sal Hy met ons praat. Die Here, die God van alle magte, Here is sy gedenknaam.” Maar jy, na jou God moet jy terugkeer. Lê jou toe op troue liefde en wat reg is, en wag altyddeur op jou God. “ Kanaän – in sy hand is daar 'n vals weegskaal; hy hou daarvan om uit te buit. Efraim sê, ‘Ja, ek het ryk geword; ek het self welvarend geword. Alles wat ek met moeite verkry het – niks kan gevind word wat as sondeskuld teen my gehou word, wat as 'n oortreding geld nie.’ Maar Ek is die Here jou God – al van Egipteland af. Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die feestyd. Ek het met die profete gepraat; Ek het dit deur baie visioene gedoen, en deur profete tref Ek vergelykings. Is Gilead boos? Hulle het heeltemal tot niet gegaan. In Gilgal het Efraim selfs bulle geoffer; ook hulle altare sal kliphope word in die slote in die veld. Jakob het gevlug na die veld van Aram; Israel moes dienswerk doen om 'n vrou te verkry; ja, om 'n vrou te verkry, moes hy kleinvee oppas. Deur 'n profeet het die Here Israel uit Egipte laat optrek; ja, deur 'n profeet is hulle opgepas.” Efraim het uiters beledigend opgetree. Sy Heer hou hom verantwoordelik vir sy bloedskuld; Hy sal hom vergeld vir sy uittarting. Wanneer Efraim gepraat het, het almal gebewe; hy was hoog geag in Israel. Maar hy het skuld op hom gelaai deur Baäl en gesterf; en nou gaan hulle voort om te sondig. Hulle het vir hulle gegote beelde gemaak – afgode van hulle silwer, met vaardigheid, alles die handewerk van ambagsmanne. Van die beelde sê hulle: “Mense wat offer, moet die kalwers soen!” Daarom sal hulle word soos 'n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn, soos kaf wat van die dorsvloer, soos rook wat uit 'n venster, weggewaai word. “ Ek is die Here jou God – al van Egipteland af. Buiten My het jy geen ander god geken nie, en naas My was daar geen redder nie. Dit is Ek wat jou in die woestyn versorg het, in 'n bitter droë land. Maar toe hulle weiding kry, het hulle versadig geraak; hulle het versadig geraak en hoogmoedig geword – daarom het hulle My vergeet. Ek het vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd langs die pad hou Ek hulle dop. Ek sal hulle aanval soos 'n beer wat haar kleintjies verloor het. Ek sal hulle borskas oopskeur. Soos 'n leeuwyfie sal ek hulle net daar verslind; die wilde diere sal hulle uitmekaar skeur. Dit het jou vernietig, Israel, dat jy teen My, jou Helper, is. Waar is jou koning dan, dat hy jou kan red in al jou stede? En waar is jou rigters, oor wie jy gesê het, ‘Gee vir my 'n koning en •hoë amptenare’? Ek gee vir jou 'n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my gramskap. “ Die sondeskuld van Efraim is toegebind, sy sonde word veilig bewaar. Die geboortepyne het vir hom aangebreek, maar hy is 'n kind sonder insig. Wanneer die tyd aanbreek, lê hy nie reg in die baarmoeder nie. Moet Ek hulle bevry uit die mag van die •doderyk? Moet Ek hulle van die dood loskoop? Waar is jou pessiektes, Dood? Waar is jou epidemie, Doderyk? Medelye is vir my oë verberg.” Ja, hy bring skeiding tussen broers. Die oostewind, die wind van die Here, steek al op in die woestyn, sodat Efraim se waterbron sal wegdroog, sy fontein sal opdroog. Dit sal die voorraadkamers plunder van alle kosbare voorwerpe. Samaria gaan boet, want sy was in opstand teen haar God. Deur die swaard sal hulle val; hulle kinders sal verpletter word, hulle swanger vroue sal oopgesny word. Keer terug, Israel, na die Here jou God, want jy het deur jou sondeskuld gestruikel. Kom met julle woorde en keer terug na die Here. Sê vir Hom: “Vergewe ons sondeskuld volkome, aanvaar ons belydenis; ons wil met die vrug van ons lippe vergoed. Assirië kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie, en ons sal nie meer ons handewerk ‘ons god’ noem nie; want net by U vind die vaderlose ontferming.” “ Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhê. Omdat my woede teen hom bedaar het, sal Ek vir Israel wees soos dou. Hy sal bloei soos 'n narsing, en wortels skiet soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei; sy prag sal wees soos dié van 'n olyfboom, en sy geur soos dié van die Libanon. Dié wat in sy skaduwee gewoon het, sal terugkeer; hulle sal koring verbou, en uitspruit soos 'n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon. “Efraim, watter ooreenkoms is daar nog tussen My en die afgode? Ek is die Een wat hom antwoord, en Ek hou hom in die oog. Ek is soos 'n immergroen sipres – by My word jou vrugbaarheid gevind.” Wie is wys dat hy hierdie dinge kan verstaan, en verstandig dat hy dit kan begryp? Ja, die paaie van die Here is reguit – regverdiges loop daarop, maar oortreders sal daarop struikel. Dit is die woord van die Here aan Joël, seun van Petuel. Luister hierna, oudstes, gee aandag, al die inwoners van die land! Het so iets al in julle leeftyd gebeur, of in die leeftyd van julle voorouers? Hiervan moet julle vir julle kinders vertel, en julle kinders vir hulle kinders, en hulle kinders vir die volgende geslag. Wat die ruspes laat oorbly het, het die treksprinkane opgevreet; wat die treksprinkane laat oorbly het, het die voetgangersprinkane opgevreet, wat die voetgangers laat oorbly het, het die kaalvretersprinkane opgevreet. Skrik wakker, dronkaards, en huil, huil verdrietig, alle drinkebroers, oor die sap van druiwe, want dit is voor julle monde weggeruk! Want, 'n nasie het opgetrek teen my land, magtig en ontelbaar. Hulle tande is die tande van 'n leeu, hulle het die kake van 'n leeuwyfie. Hulle het verwoesting aangerig in my wingerd, en van my vyebome fynhout gemaak. Hulle het dit heeltemal kaal gestroop, dit laat val; die druiweranke staan wit gebleik. Huil soos 'n jongmeisie wat rouklere aantrek oor die verloofde van haar jeug. Die voorsiening van •graan- en •drankoffers aan die •tempel van die Here is afgesny. Die priesters treur, hulle wat in diens van die Here staan. Die landerye is vernietig, die grond is uitgedor. Ja, die koring is vernietig, die •nuwe wyn het opgedroog, die olyfoes het weggekwyn. Staan verslae, saaiboere; huil verdrietig, wingerdboere, oor die koring en die gars, want die oes op die land is verlore. Die wingerdstok het verdor en die vyeboom het verwelk, die granaat, selfs die palm en die appelboom. Al die bome van die veld het verdroog; ja, die mense se vreugde het ook opgedroog. Trek rouklere aan en weeklaag, priesters; huil, julle wat diens doen by die altaar. Kom, bring die nag deur in rouklere, julle wat in diens van my God staan, want •graanoffer en drankoffer word weerhou van die huis van julle God. Bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Laat die oudstes en al die inwoners van die land saamkom in die huis van die Here julle God, en roep om hulp tot die Here! Ag, daardie dag! Ja, die dag van die Here is naby en dit kom as verwoesting van die Almagtige af. Is die kos nie voor ons oë vernietig, en het die vreugde en blydskap nie uit die huis van ons God verdwyn nie? Die saad lê uitgedroog onder die kluite, die stoorplekke staan verlate, die graanskure is verwoes; want die koring het verdor. Hoor hoe kla die diere, die beestroppe maal rond omdat daar nie weiding vir hulle is nie, selfs die troppe kleinvee kry swaar! Tot U, Here, roep ek! Want vuur het die weiding in die woestyn verteer, vlamme het al die bome in die veld verskroei. Selfs die diere van die veld smag na U, omdat die spruite opgedroog en vuur die weiding in die woestyn verteer het. Blaas die •ramshoring op Sion, maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land moet bewe, want die dag van die Here is aan die kom, ja, dit is naby! Dit is 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis. Soos die rooidag wat oor die berge uitsprei, so is daar 'n groot en magtige volk soos daar nog nooit tevore was, of ooit weer sal wees nie tot in die verste nageslag. Voor hulle uit verteer 'n vuur, en agter hulle verskroei 'n vlam. Soos die tuin van Eden is die land voor hulle, maar agter hulle lê 'n verlate woestyn. Boonop is dit nie moontlik om van hulle te ontvlug nie. Soos perde lyk hulle, soos oorlogsperde, so hardloop hulle. Soos met die geratel van strydwaens storm hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van vlamme wat strooi verteer, soos 'n magtige volk wat vir die oorlog opgestel is. Voor hom bewe volke, almal se gesigte is doodsbleek. Soos krygshelde storm hulle, soos krygsmanne klim hulle teen die stadsmuur uit: Elkeen van hulle gaan reguit vorentoe, hulle verander nie van rigting nie. Die een hinder die ander nie, elke manskap bly op koers; al sneuwel sommige onder die aanslag, hulle wyk nie af nie. Hulle bestorm die stad, op die stadsmuur hardloop hulle, die huise val hulle binne, deur die vensters klim hulle soos diewe. Voor hierdie volk bewe die aarde, skud die hemele. Son en maan word duister, die sterre hou hulle glans terug. En die Here self verhef sy stem voor sy leërmag uit, want geweldig groot is sy leër, ja, magtig is hulle wat sy bevel uitvoer. Voorwaar, die dag van die Here is groot, uitermate verskriklik – wie kan dit verduur? “Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die Here. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die Here julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die Here staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, Here, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ” Daarop het die Here Hom vir sy land beywer, Hy was jammer vir sy volk. Die Here het geantwoord, Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring en •nuwe wyn en olie, sodat julle daarvan versadig kan word, Ek gee julle nie langer daaraan oor om deur die nasies verneder te word nie. Die vyand uit die noorde sal Ek uit julle midde verwyder, Ek sal hom na 'n dor en verlate land verdryf: sy voorhoede na die oostelike see, sy agterhoede na die westelike see. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal optrek, omdat hy groot dinge probeer doen het. “ Moenie bang wees nie, landerye, juig en wees bly, want die Here doen groot dinge! Moenie bang wees nie, wilde diere, want die weiding van die woestyn word groen, ja, die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle volle opbrengs. “Kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee vir julle reën as teken van geregtigheid, soos voorheen, sal Hy stortbuie en laatreëns vir julle laat uitsak. Dan sal die dorsvloere vol skoon graan wees, die kuipe sal oorloop van nuwe wyn en olie. “ Ek sal julle vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het, daardie groot leërmag van My wat Ek teen julle uitgestuur het. Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word, en julle sal die Naam van die Here julle God loof, wat wonderlike dinge met julle laat gebeur het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle weet dat Ek in julle midde is, Israel. Ek is die Here julle God en niemand anders nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.” “ Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die Here gesê het. Net hulle wat deur die Here geroep word, sal vry wees.” “ Ja, wanneer Ek in daardie dae, in daardie tyd, die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle afbring na die vallei van Josafat! Ek sal daar met hulle in 'n regstryd tree oor my volk en my erfdeel, oor Israel, wat deur hulle onder die nasies verstrooi is. Hulle het my land verdeel en oor my volk lootjies getrek. Hulle het die seuns geruil vir prostitute en die meisies verkoop vir wyn en dit uitgedrink. “ Verder, wat het julle met My te doen, Tirus en Sidon en al die gebiede van Filistea? Wil julle julle op My wreek? As julle My iets wil aandoen, sal Ek gou, blitsvinnig, julle dade op julle koppe laat neerkom, omdat julle my silwer en my goud gevat het; my kosbare skatte het julle in julle tempels ingevat en die kinders van Juda en Jerusalem het julle aan die Grieke verkoop om hulle ver van hulle grondgebied weg te neem. Kyk, nou gaan Ek hulle ontbied uit die plek waarheen julle hulle verkoop het. Ek sal julle dade op julle koppe laat neerkom: Ek gaan julle seuns en julle dogters verkoop aan die kinders van Juda, en hulle sal hulle weer verkoop aan die Sabeërs, aan 'n nasie ver hiervandaan.” Voorwaar, die Here het dit self gesê. Roep dit uit onder die nasies, berei voor vir 'n heilige oorlog, ontbied die krygshelde; laat al die krygsmanne nader kom, laat hulle optrek. Smee van julle ploegskare swaarde, en van julle snoeimesse steekspiese, selfs die swakke moet sê: “Ek is 'n held!” Maak gou en kom, maak al die omringende nasies bymekaar. Here, laat u krygshelde terugkeer! “Die nasies moet in beweging kom en optrek na die vallei van Josafat, want dit is waar Ek gaan sit om al die omringende nasies te oordeel.” Steek die sekel in, want die oes is ryp! Klim in, trap, want die parskuip is vol en die giskuipe loop oor, want hulle boosheid is groot! Skares, daar is skares mense in die dal van beslissing! Ja, die dag van die Here is naby in die dal van beslissing! Die son en maan word donker, die sterre hou hulle glans terug. En die Here, uit Sion brul Hy, uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here is 'n toevlugsoord vir sy volk, 'n skuilplek vir die Israeliete. “Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem 'n heilige plek wees, en vreemdes sal nie weer deur haar gebied trek nie.” Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water. 'n Fontein sal uit die huis van die Here vloei, en dit sal die Sittimdal natlei. Egipte sal 'n verlate plek word en Edom 'n verlate woestyn vanweë die geweld teen die kinders van Juda, omdat hulle onskuldige bloed in Juda vergiet het. Maar Juda sal vir altyd bly, en Jerusalem van geslag tot geslag. “Ek sal hulle bloed wreek wat Ek voorheen nie gewreek het nie.” Ja, die Here woon in Sion! Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa – woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. Dit was twee jaar voor die aardbewing, in die tyd van Ussia, die koning van Juda, en Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel. Hy het gesê: “Die Here brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” So sê die Here: “Oor drie oortredings van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle Gilead met dorssleë van yster gedors het. Ek sal vuur slinger teen die huis van Gasael; dit sal die vestings van Ben-Hadad verteer. Ek sal die sluitbalk van Damaskus breek; Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Bikat-Awen verwyder, die septerdraer uit Bet-Eden; en die volk van Aram sal na Kir in ballingskap gaan.” Dit het die Here gesê. So sê die Here: “Oor drie oortredings van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap weggevoer het as ballinge om hulle aan Edom oor te lewer. Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Gasa; dit sal sy vestings verteer. Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Asdod verwyder, die septerdraer uit Askelon. Ek sal my hand teen Ekron draai, en dié wat oorgebly het van die Filistyne sal omkom.” Dit het my Heer, die Here, gesê. So sê die Here: “Oor drie oortredings van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap as ballinge oorgelewer het aan Edom, en nie die verbond tussen broers in ag geneem het nie. Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Tirus; dit sal sy vestings verteer.” So sê die Here: “Oor drie oortredings van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het. Hy het sy meegevoel onderdruk, en in sy toorn het hy sonder ophou verskeur; hy het onverpoos met sy gramskap volgehou. Ek sal vuur slinger teen Teman; dit sal die vestings in Bosra verteer.” So sê die Here: “Oor drie oortredings van die Ammoniete, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle swanger vroue van Gilead oopgekloof het sodat hulle hulle grondgebied kon uitbrei. Ek steek 'n vuur aan in die stadsmuur van Rabba; dit sal sy vestings verteer te midde van strydkrete op die dag van oorlog, in 'n orkaan op die dag van stormwind. Hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy •hoë amptenare saam met hom.” Dit het die Here gesê. So sê die Here: “Oor drie oortredings van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het. Ek sal vuur slinger teen Moab; dit sal die vestings van Kerijot verteer; te midde van krygsrumoer sal Moab sterf, te midde van strydkrete, te midde van die geluid van •ramshorings. Ek sal die heerser met geweld uit hulle midde verwyder en al sy •hoë amptenare saam met hom ombring.” Dit het die Here gesê. So sê die Here: “Oor drie oortredings van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle die onderrig van die Here verwerp, en sy vaste voorskrifte nie nagekom het nie. Hulle vals gode het hulle laat dwaal, dié waaragter hulle voorouers aangeloop het. Ek sal vuur slinger teen Juda; dit sal die vestings van Jerusalem verteer.” So sê die Here: “Oor drie oortredings van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle regverdiges vir geld verkoop en behoeftiges vir 'n paar sandale. Hulle trap op die stof van die aarde, op die koppe van armes; en stoot weerloses uit die pad. 'n Man en sy vader gaan na dieselfde meisie, sodat hulle my heilige Naam ontheilig. Op klere wat as pand geneem is, strek hulle hulle uit langs elke altaar; en wyn wat as boetes geneem is, drink hulle in die huis van hulle God. Ek is die Een wat die Amoriete, so lank soos sederbome en so sterk soos eikebome, uitgeroei het voor hulle uit. Ek het hulle uitgeroei – hulle vrug bo en hulle wortels onder. Ek is die Een wat julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank deur die woestyn laat gaan het om die land van die Amoriete in besit te neem. Ek het van julle seuns as profete laat optree en van julle jong manne as •nasireërs. Is dit nie so nie, Israeliete?” is die uitspraak van die Here. “ Maar julle het die nasireërs wyn laat drink; aan die profete het julle opdrag gegee, ‘Julle mag nie profeteer nie!’ Kyk, Ek bring julle tot stilstand waar julle is; net soos 'n wa oorvol van gesnyde graan tot stilstand kom. 'n Toevlugsoord vir die vinnige het verlore gegaan; die sterke sal nie sy krag kan inspan nie en die held nie sy eie lewe kan red nie. Die boogskutter sal nie staande bly nie; die vlugvoetige sal nie ontkom nie, en die perderuiter nie sy eie lewe kan red nie. Die dapperste onder die helde sal op daardie dag kaal wegvlug,” is die uitspraak van die Here. “Luister na hierdie woord wat Ek, die Here, teen julle uitgespreek het, Israeliete, teen die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, ‘Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld.’ ” Loop twee saam sonder dat hulle afgespreek het? Brul 'n leeu in die bos as daar vir hom geen prooi is nie? Laat 'n jong leeu sy stem hoor uit sy lêplek sonder dat hy iets gevang het? Duik 'n voël af op 'n wip op die grond as daar vir hom geen lokaas is nie? Klap 'n wip toe op die grond as dit glad nie iets vang nie? As 'n •ramshoring in 'n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in 'n stad is, het die Here dit nie gedoen nie? Ja, my Heer, die Here, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete. 'n Leeu het gebrul – wie sal nie bang wees nie? My Heer, die Here, het gepraat – wie sal nie profeteer nie? Basuin dit uit oor die vestings in Asdod, oor die vestings in Egipteland. Sê: “Kom bymekaar op die heuwels by Samaria, en aanskou die groot paniek in haar, die verdrukking in haar midde.” “Hulle weet nie hoe om reg op te tree nie,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat die buit van geweld en misdaad opstapel in hulle vestings.” Daarom, so sê my Heer, die Here: “Daar is 'n vyand, en hy is reg rondom die land! Hy gaan jou versterkings laat intuimel, jou vestings word geplunder.” So sê die Here: “Soos 'n skaapwagter twee stukkies agterbeen en die kraakbeen van 'n oor red uit die bek van 'n leeu, so sal die Israeliete gered word wat in Samaria sit met net die hoek van 'n bed en die sykant van 'n slaapbank. Luister en getuig teen die huis van Jakob.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here, die God wat Heerser is oor alle magte. “ Ja, die dag wanneer Ek van Israel rekenskap eis oor sy oortredings, gaan Ek ook rekenskap eis van die altare van Bet-El: Die horings van die altaar sal afgekap word; dit sal op die grond val. Ek gaan die winterhuis verwoes saam met die somerhuis. Die huise met ivoorinleg sal tot niet gaan en groot huise sal verval,” is die uitspraak van die Here. Luister na hierdie woord, koeie van Basan op die berg Samaria, julle wat die armes verdruk en die behoeftiges mishandel, wat vir julle mans sê: “Bring, sodat ons kan drink!” My Heer, die Here, het gesweer by sy heiligheid: “Kyk, daar kom dae oor julle wanneer julle aan vishoeke weggedra word, en dié van julle wat oorbly, aan vishake. Deur die bresse in die stadsmuur sal julle een ná die ander uitgebring word en weggegooi word na Harmon,” is die uitspraak van die Here. “ Kom na Bet-El en oortree, na Gilgal en oortree nog meer. Bring julle offers soggens, en elke derde dag julle tiendes. Offer 'n •dankoffer van dit wat met suurdeeg gebak is. Kondig julle vrywillige offers aan, maak dit bekend; want so hou julle daarvan, Israeliete.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. “Selfs toe Ek julle met leë monde gelaat het in al julle stede, met broodgebrek in al julle woonplekke, het julle nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die Here. “ Selfs toe Ek die reën van julle weggehou het, reeds drie maande voor die oestyd, en Ek oor een dorp laat reën het en oor 'n ander dorp nie laat reën het nie, toe een stuk grond reën gekry het, en die ander stuk grond waarop Ek nie laat reën het nie, verdroog het; toe twee, drie dorpe na een dorp geslinger het om water te drink, maar hulle dors nie kon les nie; het julle nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die Here. “Ek het julle met skroeisiekte en witroes getref. Baie van julle tuine en wingerde, julle vyebome en olyfbome, het die ruspes kaal gevreet, maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die Here. “Ek het pessiektes onder julle losgelaat soos in Egipte; Ek het julle jong manne met die swaard omgebring, saam met julle buitgemaakte perde. Ek het die stank van julle leërmag in julle neusgate laat opslaan, maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die Here. “Ek het by julle verwoesting aangerig soos God se verwoesting van Sodom en Gomorra. Julle het geword soos 'n stuk hout wat uit vlamme gepluk is; maar julle het nie na My teruggekeer nie,” is die uitspraak van die Here. “Daarom gaan Ek die volgende aan jou doen, Israel; en omdat Ek dit aan jou gaan doen – wees gereed om jou God te ontmoet, Israel!” Ja, kyk, Hy wat die berge vorm en die wind skep, wat aan 'n mens sy beplanning bekend maak, wat die dagbreek duisternis maak, wat trap op die hoogtes van die aarde, die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam! Luister na hierdie woord, huis van Israel, wat ek as 'n treurlied oor julle aanhef: “Sy het geval, die jongvrou Israel sal nie weer opstaan nie. Verlate lê sy op haar grond met niemand wat haar ophelp nie.” Ja, so sê my Heer, die Here: “Die stad wat uittrek met duisend, hou honderd oor; en die een wat uittrek met honderd, hou tien oor vir die huis van Israel.” Ja, so sê die Here vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef. Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.” Soek die Here, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie – julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi. Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – Here is sy Naam. Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad. Hulle haat die een wat in die stadspoort teregwys en verafsku hom wat reguit praat. Daarom, omdat julle graanbelasting van armes eis, en 'n heffing op graan van hulle neem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; het julle pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Ek weet immers hoe baie julle oortredings en hoe talryk julle sondes is, julle wat vyandig is teenoor regverdiges, wat omkoopgeld vat en behoeftiges in die stadspoort wegwys. Daarom is die verstandige in hierdie tyd stil, want dit is 'n bose tyd. Soek die goeie, nie die slegte nie, sodat julle kan lewe; dan sal die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, só by julle wees soos wat julle sê. Haat die slegte, wees lief vir die goeie, en vestig die reg in die stadspoort. Miskien sal die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, dié wat oor is van Josef, genadig wees. Daarom, so sê die Here, die God van alle magte, my Heer: “Op al die dorpspleine klink die rouklag op. In al die strate roep hulle, ‘O wee! O wee!’ Hulle roep plaaswerkers om deel te neem aan die rouplegtigheid en die rouklag, saam met die kenners van treursang. In al die wingerde klink die rouklag op, want Ek trek deur jou midde.” Dit het die Here gesê. Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik 'n slang hom. Die dag van die Here, is dit nie duisternis, en nie lig nie, donker met geen ligglans nie? “ Ek haat, Ek verwerp julle feeste; Ek wil julle feesvierings nie ruik nie. Ja, selfs al lê julle vir My •brandoffers en julle •graanoffers op die altaar, Ek aanvaar dit nie; 'n •maaltydoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie raak nie. Hou die lawaai van julle liedere weg van My; die klank van julle harpe wil Ek nie hoor nie. Laat die reg voortrol soos water en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom. Het julle slagoffers en graanoffers vir My gebring, die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Julle sal Sakkoet, julle koning, en Kajjawan, julle beelde, die ster van julle gode wat julle vir julle gemaak het, moet dra. Ek gaan julle tot anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer,” het die Here gesê. God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam. Wee dié wat gerus is in Sion, dié wat hulle veilig voel op die berg Samaria, die hooggeplaastes van die mees vooraanstaande nasies, na wie die huis van Israel kom. Gaan oor die grens na Kalne en kyk; loop van daar na Hamat-Rabba, en gaan af na Gat van die Filistyne. Is julle beter as hierdie koninkryke, of is hulle grondgebied groter as julle s'n, julle wat die dag van onheil as ver beskou, maar die gewelddadige einde nader bring? Hulle lê op beddens met ivoorinleg, luier rond op hulle sofas, eet lammers uit die trop kleinvee en kalwers uit die stal. Hulle neurie met begeleiding van die harp; soos Dawid, improviseer hulle op musiekinstrumente. Hulle drink offerbakke vol wyn; met die beste olies salf hulle hulleself; maar hulle treur nie oor die ondergang van Josef nie. Daarom sal hulle nou in ballingskap gaan aan die voorpunt van die ballinge; die gefuif van dié wat rondluier, kom tot 'n einde. My Heer, die Here, het by Homself gesweer; die uitspraak van die Here, die God van alle magte, is: “Ek verafsku die hoogmoed van Jakob, en sy vestings haat Ek. Ek gaan die stad en alles daarin oorlewer.” As daar tien mense in 'n enkele huis oor is, sal hulle sterf. En wanneer 'n familielid, die een wat die lyk moet versorg, dit optel om dit uit die huis te neem en vir iemand wat agter in die huis is, vra: “Is daar nog by jou?” en hy antwoord: “Dis klaar!” sal hy sê: “Bly net stil! Want die Naam van die Here moet nie genoem word nie.” Want kyk, die Here gee opdrag, en Hy slaan die groot huis aan stukke en die klein huis tot splinters. Hardloop perde op 'n rotswand of ploeg 'n mens dit met osse? En tog het julle die reg in 'n giftige plant verander en die vrug van geregtigheid in wildeals. Julle is bly oor Lo-Dabar. Julle sê: “Het ons nie met eie krag Karnajim vir ons verower nie?” “Maar kyk, Ek laat teen julle, huis van Israel, 'n nasie optrek,” is die uitspraak van die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, “en hulle sal julle onderdruk van Lebo-Hamat tot by die droë loop van die Araba. ” Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is. Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, Here – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” Die Here het berou daaroor gehad. “Dit sal nie gebeur nie,” het die Here gesê. Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, my Heer, die Here, was gereed om 'n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer. Ek sê toe: “My Heer, Here – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” Die Here het berou daaroor gehad. “Ook dit sal nie gebeur nie,” het my Heer, die Here, gesê. Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by 'n loodregte muur. In sy hand was daar 'n skietlood. Toe sê die Here vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “'n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. “Die offerhoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees. Ek gaan teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.” Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u 'n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie; want dit is wat Amos sê, ‘Deur die swaard sal Jerobeam sterf, en Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ” Amasia sê toe vir Amos: “Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. In Bet-El mag jy nie meer verder profeteer nie, want dit is die koning se heiligdom; dit is 'n tempel van die koninkryk.” Amos het geantwoord en vir Amasia gesê: “Ek is nie 'n beroepsprofeet nie en ook nie lid van 'n profetegroep nie; maar ek is 'n veewagter en ek prik wildevye. Die Here het my agter die kleinvee weggevat en die Here het vir my gesê, ‘Gaan profeteer vir my volk Israel!’ Hoor dan nou die woord van die Here: “Jy sê, “ ‘Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag nie teen die huis van Isak driftig preek nie.’ “Daarom, so sê die Here, “ ‘Jou vrou sal in die stad hoereer, en deur die swaard sal jou seuns en dogters val. Jou grond sal met 'n maatlyn opgedeel word, en jy self sal op •onrein grond sterf. En Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ” Dít het my Heer, die Here, my laat sien: Daar was 'n mandjie met somervrugte. Hy het gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “'n Mandjie met somervrugte.” Daarop sê die Here vir my: “Die einde het vir my volk Israel aangebreek. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie.” “Die sangeresse van die paleis sal weeklaag op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Tallose lyke, oral neergegooi! Stilte!” Luister hierna, julle wat die behoeftiges vertrap, en daarop uit is om weerloses in die land uit te wis deur te sê, “Wanneer is nuwemaan verby, sodat ons weer koring kan verkoop, en die Sabbat, sodat ons die graansakke kan oopmaak?” net om 'n efa kleiner te maak en 'n sikkel groter, en om te kul met 'n vals weegskaal, om armes vir geld te koop en behoeftiges vir 'n paar sandale. “Die uitskotgraan sal ons ook verkoop.” Die Here het gesweer by die trots van Jakob: “Ek sal al hulle dade in ewigheid nie vergeet nie. Sal die aarde nie hieroor skud nie, en elkeen wat daarop woon, nie treur nie? Dit sal in sy geheel styg soos die Nyl; dit sal onstuimig wees en terugsak soos die rivier van Egipte.” “Op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal Ek die son laat ondergaan op die middaguur en dit helder oordag donker maak vir die aarde. Ek sal julle feeste in 'n rouplegtigheid verander en al julle liedere in treursange. Ek sal om alle heupe 'n roukleed hang en op elke kop 'n kaal plek maak. Ek sal dit laat wees soos die rouplegtigheid oor 'n enigste kind en die einde daarvan soos 'n bittere dag.” “ Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “dat Ek hongersnood in die land sal uitstuur – nie 'n honger na brood en 'n dors na water nie, maar 'n honger om die woorde van die Here te hoor. Hulle sal strompel van see tot see; van noord na oos sal hulle dwaal, op soek na die woord van die Here, maar dit nie vind nie. Op daardie dag sal die mooi jongmeisies flou word, ook die jong manne, van dors. Hulle wat sweer by die Skuld van Samaria, en sê, ‘So waar as wat jou god leef, Dan’, of ‘so waar as wat jou god leef, Berseba’; hulle sal val en nie weer opstaan nie.” Ek het my Heer by die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die pilaarkop sodat die drumpels skud. Maak 'n einde aan hulle, aan wie op die voorpunt is van hulle almal. Hulle agterhoede sal Ek met die swaard ombring. Geen vlugteling onder hulle sal ontvlug nie; geen oorlewende onder hulle sal ontkom nie. Al grawe hulle tot in die •doderyk – van daar af sal my hand hulle uithaal. Al klim hulle op in die hemel – van daar af sal Ek hulle afbring. Al verberg hulle hulleself op die kruin van Karmel – daar sal Ek hulle opspoor en uithaal. Al kruip hulle vir my oë weg op die bodem van die see – daar sal Ek die slang opdrag gee en hy sal hulle pik. Al gaan hulle in ballingskap voor hulle vyande uit – daar sal Ek die swaard opdrag gee en dit sal hulle ombring. Ek sal my oog op hulle hou, ten kwade, nie ten goede nie.” My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, Hy wat die aarde aanraak en dit sidder, sodat almal wat daarop woon, treur, en dit styg in sy geheel soos die Nyl en sak terug soos die rivier van Egipte; Hy wat in die hemel sy bokamer bou en sy hemelkoepel op die aarde vestig; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – Here is sy Naam. “Israeliete, is julle nie maar vir My soos die Kussiete nie?” is die uitspraak van die Here. “Het Ek nie Israel uit Egipteland laat optrek en die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?” Kyk, die oë van my Heer, die Here, is gerig op die sondige koninkryk. “Ek sal dit van die aardbodem af uitroei; nogtans sal Ek die huis van Jakob nie heeltemal uitroei nie,” is die uitspraak van die Here. “ Ja, kyk, Ek gee bevel, en Ek gaan onder al die nasies die huis van Israel skud asof hy in 'n sif geskud word, maar nie 'n klippie sal op die grond val nie. Deur die swaard sal al die sondaars van my volk sterf, hulle wat sê, ‘Die onheil sal ons nie bereik nie, nie tot by ons kom nie.’ ” “ Op daardie dag sal Ek die vervalle skuiling van Dawid herstel. Ek sal die bresse toebou en die ruïnes herbou om te wees soos in die dae van weleer, sodat hulle dié wat oorgebly het van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem,” is die uitspraak van die Here, wat dit gaan doen. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer die een wat ploeg die een wat graan oes, sal inhaal, en die een wat druiwe trap die een wat die saadsak dra. Die berge sal drup van druiwesap en die heuwels sal golf van graan. Ek sal die lot van my volk Israel verander. Hulle sal hulle verwoeste stede herbou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal hulle plant in hulle grond en hulle sal nie weer verwyder word van die grond wat Ek aan hulle gegee het nie,” sê die Here, jou God. Die openbaring aan Obadja. Dit is wat die Here, my Heer oor Edom gesê het. Ja, ons het 'n boodskap gehoor wat van die Here af kom. 'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur: “Staan op! Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!” “ Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies; jy sal heeltemal verag word. Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou, jy wat tuis is in die rotsskeure van jou hoë woonplek, wat in jou hart sê, Wie sal my afbring aarde toe? Al sou jy jou nes so hoog maak soos dié van 'n arend, selfs al sou jy tussen die sterre nes maak, van daar af sal Ek jou afbring,” is die uitspraak van die Here. “ Was dit maar diewe wat na jou toe gekom het, was dit maar diewe in die nag! Hulle steel darem net tot hulle genoeg het. Hoe word jy vernietig! Was dit maar druiweplukkers wat na jou toe gekom het! Hulle laat darem natrossies agter. Hoe word Esau deursoek, sy wegsteekplekke kaal gestroop! Almal met wie jy 'n verbond gesluit het, stuur jou terug tot by die landsgrens. Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê, daardie mense met wie jy 'n vredesooreenkoms het. Hulle wat saam met jou geëet het, laat 'n vreemde jou plek inneem. Daar is nie meer raad in Edom oor nie!” “Sal Ek nie op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “wyse manne uit Edom laat verdwyn en raadgewers uit die bergland van Esau nie?” Teman, jou krygshelde sal verskrik wees, sodat mense uitgeroei sal word op die bergland van Esau. “Vanweë moord, vanweë geweld teen jou broer Jakob, sal skaamte jou oorval en jy sal uitgeroei word vir altyd. Die dag toe jy eenkant gaan staan het, die dag toe vreemdes die besittings van Jakob weggevoer het, toe buitelanders sy poorte binnegedring en geloot het oor Jerusalem, was ook jy soos een van hulle! Jy moes nie gestaan en toekyk het op die dag van jou broer, op die dag toe 'n ramp hom getref het nie. Jy moes nie bly gewees het oor die Judeërs op die dag van hulle ondergang nie. Jy moes nie 'n groot mond gehad het op die dag van angs nie. Jy moes nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle teenspoed nie. Jy moes nie ook sy onheil staan en dophou het op die dag van sy teenspoed nie. Jy moes nie jou hande uitgesteek het na sy besittings op die dag van sy teenspoed nie. Jy moes nie op die ontsnaproetes gaan staan het om sy vlugtelinge uit te roei nie. Jy moes nie sy mense wat wou ontvlug uitgelewer het op die dag van angs nie. Voorwaar, die dag van die Here oor al die nasies is naby! Soos wat jy gedoen het, sal aan jou gedoen word. Jou daad sal terugkeer op jou kop. ” “ Ja, soos wat julle die beker moes drink op my heilige berg, sal al die nasies voortdurend moet drink. Hulle sal drink en onsamehangend praat en hulle sal wees asof hulle nooit bestaan het nie. Maar op die berg Sion sal daar ontvlugting wees, en Sion sal heilig wees. “Die huis van Jakob sal dié wat hulle verdryf het, uitdryf. Die huis van Jakob sal vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau sal strooi wees. Die vuur sal die strooi brand en dit verteer. Daar sal van die huis van Esau nie een ontvlug nie.” Want die Here het dit gesê. Hulle sal die Negev saam met die bergland van Esau in besit neem, die Sjefela saam met Filistea. Hulle sal die gebied van Efraim en die gebied van Samaria in besit neem en Benjamin saam met Gilead. Die ballinge van hierdie leër, die Israeliete, sal Kanaänitiese gebied in besit neem tot by Sarfat, en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die Negev in besit neem. Verlossers sal dan na die berg Sion opgaan om oor die bergland van Esau te regeer; en die koningskap sal aan die Here behoort. Die woord van die Here het tot Jona, die seun van Amittai, gekom: “Staan op, gaan na die groot stad Nineve en spreek hulle aan, want die kwaad wat hulle doen, het opgestyg tot voor My.” Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van die teenwoordigheid van die Here af. Hy het afgegaan na Jafo en daar op 'n skip afgekom wat op pad was na Tarsis. Hy het die reisgeld betaal en in die skip afgeklim om saam met hulle na Tarsis te gaan, weg van die teenwoordigheid van die Here. Maar die Here het 'n sterk wind oor die see laat opkom. Daar was 'n groot storm op see en die skip was op die punt om in stukke te breek. Die matrose was bang en het elkeen na sy god om hulp geroep. Hulle het ook die toerusting wat op die skip was, in die see gegooi om hulle vrag ligter te maak. Jona het egter afgegaan na die agterste ruim van die skip en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. Die skeepskaptein gaan toe na hom en sê vir hom: “Wat is dit met jou dat jy so vas lê en slaap? Staan op! Roep jou god aan! Miskien sal dié god aan ons dink en sal ons nie ondergaan nie.” Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons beslis die saak deur die lot, sodat ons kan weet deur wie se toedoen hierdie ramp ons tref.” Hulle het met die lot beslis en die lot het Jona uitgewys. Toe sê hulle vir hom: “Vertel ons asseblief waarom hierdie ramp ons tref. Watter werk doen jy en waar kom jy vandaan? Uit watter land kom jy en van watter volk?” Hy het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër, en die Here, die God van die hemel wat die see en die droë grond gemaak het, dien ek met ontsag.” Die manne was toe vreesbevange en het vir hom gesê: “Hoe kon jy so iets doen?” Hulle het immers geweet dat hy besig was om te vlug, weg van die teenwoordigheid van die Here, want hy het dit vir hulle vertel. Hulle sê toe vir hom: “Wat moet ons met jou maak sodat die see om ons kan bedaar?” Want die see het al hoe onstuimiger geraak. Hy het geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal die see om julle bedaar; want ek is seker dit is oor my dat hierdie groot storm oor julle woed.” Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die Here aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, Here, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die Here; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier. Toe was die manne geweldig bang vir die Here. Hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Die Here het dit so beskik dat 'n groot vis Jona insluk, en hy was drie dae en drie nagte lank in die vis se maag. Jona het uit die vis se maag tot die Here sy God gebid. Hy het gesê: “In my nood het ek na die Here geroep, en Hy het my geantwoord. Uit die ingewande van die •doderyk het ek om hulp geroep, en U het my stem gehoor. U het my in die diepte gegooi, in die hart van die oseane. Seestrome het my omring, al u golwe en branders het oor my gespoel. “ Ek self het gedink, ek is weggewerp, onder u oë uit. Maar ek sal weer u •heilige •tempel sien! Water het my tot aan my keel omsluit, •oerwater het my omring; seewier het my kop omstrengel. Na die basis van die berge het ek afgesak; die aarde – haar sluitbalke was vir altyd toe agter my. “Maar tog het U my lewe uit die grafkuil opgetrek, Here my God! Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die Here gedink. My gebed het U in u heilige tempel bereik. “ Wie nuttelose afgode dien, versaak hulle trou aan die verbond. Maar ek, met 'n danklied wil ek aan U 'n offer bring, wat ek beloof het, sal ek betaal. Dit is die Here wat redding bring.” Die Here het toe die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spoeg. Die woord van die Here het die tweede keer tot Jona gekom: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig aan die stad die boodskap wat Ek aan jou opdra.” Jona het toe opgestaan en na Nineve gegaan soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n uitsonderlike groot stad: drie dae se loop van kant tot kant. Jona het begin om die stad binne te gaan, 'n dag se loop ver. Hy het uitgeroep: “Nog net veertig dae, dan word Nineve verwoes!” Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en hulle het almal, belangrik en onbelangrik, rouklere aangetrek. Toe die berig die koning van Nineve bereik, het hy van sy troon af opgestaan, sy koningsmantel afgegooi, 'n roukleed omgehang en in die stof gaan sit. Hy het in Nineve laat afkondig: “Op las van die koning en sy belangrike amptenare: Niemand mag aan enigiets proe nie – nie mens of dier, beeste of kleinvee nie. Hulle mag nie eet of water drink nie. Mens en dier moet met 'n roukleed bedek wees. Die mense moet God ernstig aanroep en elkeen moet hom bekeer van sy slegte gedrag en van die geweld wat aan sy hande kleef. Wie weet, dalk draai God terug en het Hy berou; dalk draai Hy om, weg van sy brandende toorn, sodat ons nie vergaan nie.” God het gesien wat hulle doen, dat hulle teruggedraai het van hulle verkeerde pad. God was jammer dat Hy gesê het Hy gaan 'n ramp oor hulle bring, en Hy het dit toe nie uitgevoer nie. Maar dit het Jona erg ontstel, en hy het kwaad geword. Hy bid toe tot die Here en sê: “Ag, Here, is dit nie wat ek gesê het toe ek nog in my land was nie? Daarom het ek vroegtydig na Tarsis gevlug, want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, 'n God wat berou het oor die onheil. Here, neem dan nou maar my lewe van my weg, want dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” Daarop sê die Here: “Is dit reg dat jy so kwaad is?” Jona het by die stad uitgegaan en aan die oostekant gaan sit. Daar het hy vir hom 'n takskerm gemaak en daaronder in die skaduwee gaan sit, sodat hy kon sien wat met die stad gebeur. Toe het die Here God 'n kasterolieplant beskik om oor Jona op te kom vir 'n skaduwee oor sy kop en om hom van sy onvergenoegdheid te bevry. Jona was baie bly oor die kasterolieplant. Maar met dagbreek die volgende môre het God 'n wurm beskik. Dit het die kasterolieplant binnegedring, en dit het verlep. Teen sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik, en toe die son op Jona se kop bak, het hy duiselig geraak en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” Toe sê God vir Jona: “Is dit reg dat jy kwaad is oor die kasterolieplant?” Hy het geantwoord: “Ek is tereg tot die dood toe kwaad.” Toe sê die Here: “Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere? ” Die woord van die Here wat tot Miga van Morêset gekom het in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda, wat aan hom geopenbaar is oor Samaria en Jerusalem. Luister, alle volke! Let op, aarde en almal wat daarop woon! My Heer, die Here, gaan teen julle getuig, die Heer uit sy heilige paleis. Kyk, die Here kom uit sy woonplek; Hy daal neer en trap op die hoogtes van die aarde. Die berge smelt onder Hom en die valleie skeur oop, soos was wat voor vuur smelt, soos water wat teen 'n berghang afstroom. Oor Jakob se oortreding gebeur al hierdie dinge, oor die sondes van die huis van Israel. “Wie is verantwoordelik vir Jakob se oortreding? Is dit nie Samaria nie? Wie is verantwoordelik vir die offerhoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie? Daarom sal Ek van Samaria 'n puinhoop maak, 'n stuk veld vir die aanplant van wingerd. Ek sal haar klippe in die vallei laat afrol, haar fondamente blootlê. Al haar afgodsbeelde sal stukkend geslaan word, alles wat sy verdien het, sal in die vuur verbrand word, al haar afgode sal Ek vernietig; want met die loon van 'n prostituut het sy dit bymekaargemaak, en dit sal weer die verdienste van 'n prostituut word.” Hieroor wil ek weeklaag en huil; ek wil kaalvoet en sonder klere loop; ek wil tjank soos woestynjakkalse en brom soos steenuile; want Samaria se wonde is ongeneeslik, ja, dit strek tot by Juda; dit raak aan die poort van my volk, aan Jerusalem. Moet dit nie in Gat vertel nie, moet glad nie daaroor huil nie! In Bet-Leafra rol hulle in die stof! Trek weg, inwoners van Safir, naak en in skaamte. Die inwoners van Saänan ruk nie op nie. Daar word gerou in Bet-Haesel; Hy neem sy bystand van julle weg. Ja, die inwoners van Marot wag angstig op iets goeds, want die kwaad wat van die Here kom, het afgegaan tot by die poort van Jerusalem. Span die perde voor die strydwa, inwoners van Lagis! Dit was die begin van die dogter van Sion se sonde; ja, in jou is die oortredings van Israel gevind. Daarom moet jy afskeidsgeskenke gee aan Morêset-Gat. Die huise by Agsib sal 'n droë fontein vir die konings van Israel wees. Ek sal weer 'n veroweraar na julle bring, inwoners van Maresa; hy sal tot by Adullam kom. Trots van Israel, skeer jou kop kaal, skeer jou hare af oor jou lieflingkinders; maak die kaal kol so groot soos dié van 'n aasvoël, want hulle sal van jou af weggevoer word in ballingskap. Wee hulle wat onreg bedink, wat kwaad beplan op hulle beddens! Teen dagbreek voer hulle dit uit, want die mag is in hulle hande. Hulle begeer stukke grond, en neem dit af, huise, en neem dit in besit. Hulle bedreig 'n man en sy gesin, 'n mens en sy erfdeel. Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek beplan onheil teen hierdie geslag, 'n onheil waaruit julle nie julle nekke sal kan trek nie. Julle sal nie regop kan loop nie, omdat dit 'n tyd van onheil sal wees.” Op daardie dag sal iemand 'n spotlied oor julle laat opklink, 'n klaaglied sing: “Dit is verby met ons!” sal hy sê. “Ons is heeltemal vernietig! Hy vervreem die eiendom van my mense! Hoe ontneem Hy my dit! As vergelding verdeel Hy ons grond.” Daarom sal niemand julle verteenwoordig in die geloofsgemeenskap van die Here wanneer die land deur loting verdeel word nie. “Julle moet nie driftig profeteer nie,” sê hulle driftig. “'n Mens mag nie hierdie dinge driftig profeteer nie. Beledigings sal in elk geval niks bereik nie. Kan dit gesê word, huis van Jakob? Is die Here ongeduldig, of is dit sy dade hierdie?” “Doen my woorde nie iemand goed wat die regte pad loop nie? Maar julle het vir my volk 'n vyand geword wat teenoor vredeliewende mense stelling inneem: Julle pluk die mantel af van niksvermoedende verbygangers, mense wat uit 'n oorlog terugkeer. Julle verdryf die vroue van my volk uit huise waaraan hulle verknog is; van hulle kinders ontneem julle vir altyd die waardigheid wat Ek gee. Maak gereed en gaan weg, want dit is nie 'n tuiste hierdie nie! Omdat dit •onrein is, sal dit vernietig word – 'n verskriklike vernietiging.” As iemand maar net voortdurend onsin en die leuen versprei, “Ek sal vir jou driftig profeteer oor wyn en sterk drank”, dan word hy die driftige profeet van hierdie mense! “ Ek sal jou beslis bymekaarmaak, Jakob, almal van julle; Ek sal beslis die oorblyfsel van Israel byeenbring. Ek sal hulle versamel soos kleinvee in 'n kraal, soos 'n trop diere in 'n weiveld; daar sal 'n rumoer van mense wees. “ Die een wat deurbreek, gaan voor hulle uit. Hulle breek deur en gaan deur 'n poort; hulle gaan daardeur uit! Hulle Koning gaan voor hulle uit, die Here is op die voorpunt!” Maar ek sê: “Luister tog, hoofde van Jakob, •gesagvoerders van die huis van Israel! Is julle nie veronderstel om die reg te ken nie, julle wat die goeie haat en die slegte liefhet, julle wat die mense se velle van hulle afskeur en die vleis van hulle bene; julle wat my volk se vleis eet, hulle velle afstroop en hulle bene stukkend kap, hulle uitmekaarhaal soos in 'n pot, ja, soos vleis in 'n kookpot?” Dan sal hulle na die Here om hulp roep, maar Hy sal hulle nie antwoord nie. In daardie tyd sal Hy sy gesig vir hulle verberg omdat hulle optrede boos was. So sê die Here oor die profete wat my volk mislei, wat vrede verkondig as hulle iets te ete kry; maar as iemand hulle nie iets in die mond stop nie, 'n oorlog teen hom heilig: “ Daarom, dit sal vir julle nag wees, sonder visioene, ja, donker, sonder voorspellings. Die son sal ondergaan vir die profete, die dag sal vir hulle pikdonker wees. Die sieners sal in die skande gesteek word, die voorspellers sal beskaamd staan. Hulle sal almal hulle snorre bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.” Maar ek, ek is gevul met krag, met die Gees van die Here, met 'n sin vir geregtigheid en die moed, om aan Jakob sy opstand en aan Israel sy sonde bekend te maak: “Luister tog hierna, hoofde van die huis van Jakob en gesagvoerders van die huis van Israel, julle wat regte minag en alles wat reg is, verdraai; julle wat Sion met bloed gebou het en Jerusalem met onreg! Haar leiers spreek 'n oordeel uit vir omkoopgeskenke! Haar priesters gee onderrig teen betaling! Haar profete maak voorspellings vir geld! Hulle steun nogal op die Here en sê, ‘Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons tref nie!’ Daarom, deur julle toedoen sal Sion 'n omgeploegde veld word; Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg oorgroeide heuwels.” “ In die laaste dae sal die berg van die Here se huis stewig staan, as die hoogste van die berge; ja, hy sal bo die heuwels uittroon. Volke sal daarheen stroom, baie nasies sal gaan en sê, ‘Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy weë kan leer, en ons op sy paaie kan volg.’ Ja, uit Sion sal daar onderrig kom en die woord van die Here uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie; maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag. Die Here, Heerser oor alle magte, het dit immers self gesê. Selfs as al die volke elkeen in die naam van sy god voortgaan, sal óns in die naam van die Here ons God voortleef vir altyd en altyd. “ ‘Op daardie dag,’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘sal Ek die gebreklikes bymekaar maak, die verstrooides versamel, ook hulle wat Ek sleg behandel het. Ek sal die gebreklikes 'n oorblyfsel maak, en dié wat ver weg was, 'n sterk nasie.’ Die Here sal op die berg Sion oor hulle koning wees, van nou af tot in ewigheid. En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad – die koningskap vir die dogter van Jerusalem.” Waarom skree jy dan nou so hard? Het jy nie meer 'n koning nie? Of het jou raadgewer verdwyn, sodat pyn jou oorval het soos 'n vrou wat geboorte skenk? Krimp ineen en skreeu dit uit, dogter van Sion, soos iemand met geboortepyne! Want nou sal jy die stad moet verlaat en in die veld gaan woon. Jy sal na Babilonië gaan: Daar sal jy gered word; daar sal die Here jou uit die hand van jou vyande verlos. “Maar nou span baie nasies teen jou saam, hulle wat sê, ‘Laat Sion maar ontheilig word; ons sal dit met genoegdoening aanskou.’ Húlle weet egter nie wat die Here beplan nie en hulle verstaan nie sy besluite nie, dat Hy hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargemaak het. ‘Staan op en dors die gerwe, dogter van Sion, want Ek maak jou horing van yster en jou hoewe maak Ek van brons. Jy sal baie nasies vertrap! Jy sal hulle buit aan die Here toewy, al hulle rykdom aan die Heer van die hele aarde. ’ ” Sny jouself maar stukkend, strydlustige vrou! Ons word beleër en die regter van Israel word met 'n stok op die wang geslaan! “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om 'n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer. ” Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir 'n swanger vrou om geboorte te skenk. Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete. Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God. Hulle sal veilig gevestig wees, want dan sal hy magtig wees tot aan die uithoeke van die aarde. “Hierdie een sal ongedeerd wees. Wanneer Assirië ons land binnekom, sy voete in ons vestings sit, sal ons sewe herders, ja, agt stamhoofde uit die mense teen hulle opstel. Hulle sal die land Assirië met die swaard kaalstroop, die land van Nimrod met dolke. Hy sal ons van Assirië red wanneer hulle ons land binnekom en ons grense oorsteek. Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die Here kom, soos sagte reën op gras, wat niks van 'n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie. Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos 'n leeu tussen wilde diere wees, soos 'n jong leeu onder 'n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie. Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!” “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek jou perde wat by jou is, uitdelg, en jou strydwaens vernietig. Ek sal ook die stede in jou land uitdelg en al jou versterkte stede afbreek. Ek sal die towery waarmee jy besig is, uitdelg, en jy sal nie meer waarsêers hê nie. Ek sal jou afgodsbeelde en gedenkstene wat in jou midde is, uitdelg, en jy sal nie meer voor jou eie handewerk in aanbidding buig nie. Ek sal jou asjeras wat in jou midde is, uitruk, en jou stede verwoes. Ek sal in toorn en woede wraak neem op die nasies wat nie luister nie.” Julle moet hoor wat die Here sê: “Staan op, lê 'n klag voor die berge, en laat die heuwels jou stem hoor. Luister, berge, na die aanklag van die Here, luister, onwrikbare fondamente van die aarde! Ja, die Here lê 'n klag teen sy volk; Hy het 'n regsaak met Israel, ‘My volk, wat het Ek aan jou gedoen en hoe het Ek jou vermoei? Antwoord My! Ek het jou immers laat optrek uit Egipteland, uit die plek van slawerny het Ek jou losgekoop. Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur. My volk, onthou tog wat Balak, die koning van Moab beplan het, en wat Bileam, die seun van Beor, hom geantwoord het. Onthou wat gebeur het van Sittim tot by Gilgal, sodat jy die regverdige dade van die Here kan erken.’ ” “Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan, my neerbuig voor die verhewe God? Sal ek Hom tegemoetgaan met •brandoffers, met jaaroudkalwers? Sal die Here genoeë neem met duisende ramme, met tienduisende strome olyfolie? Moet ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir my eie sonde?” Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop? Die stem van die Here roep tot die stad (dit is verstandig om vir u Naam ontsag te hê): “Luister na die straf en wie dit bepaal het. Is daar steeds in die huis van die goddelose skatte wat deur onreg verkry is en 'n verkleinde efa, wat vervloek is? Sal Ek 'n vals weegskaal en 'n sak met vals gewigte oorsien? Die stad se rykes is vol geweld en die inwoners praat leuens; hulle tonge is die ene bedrog in hulle monde. Ek sal dan nou ook begin om jou te straf, om jou te verwoes oor jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie. Hy sal jou binne-in die stad verneder. Jy sal mense verskuif, maar nie na veiligheid bring nie, en wie jy wel beveilig, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar nie oes nie; jy sal olywe pars, maar jouself nie met olie invryf nie; jy sal druiwe trap, maar nie •nuwe wyn drink nie. “Jy het die wette van Omri onderhou en alles gedoen wat die huis van Agab gedoen het; julle het hulle raad gevolg. Daarom sal Ek jou 'n skrikbeeld maak en die inwoners van die stad die rede vir 'n gefluit. Julle sal my volk se vernedering moet dra. ” Wee my! Soos ná die insameling van somervrugte, soos ná die oes van die druiwe, is daar geen druiwetros om te eet of vroeë vye wat ek begeer nie. Die getroues het uit die land verdwyn, en daar is glad nie meer opregtes onder die mense nie. Hulle almal lê en wag om bloed te vergiet; hulle maak jag op mekaar met nette. Albei hande staan gereed om kwaad te doen; die •hoë amptenaar en ook die regter vra 'n omkoopgeskenk. Ja, die vername is die een wat sê wat hy wil hê, en hulle verbind mense daartoe. Die beste onder hulle is soos 'n doringstruik, die opregtes onder hulle is erger as 'n doringheining. Die dag van hulle wat jou dophou, die dag om met jou af te reken, is op pad. Nou gaan die verwarring wat hulle tref, aanbreek! Moenie 'n vriend vertrou nie! Moenie op 'n boesemvriend staatmaak nie! Wees versigtig wat jy sê vir die vrou wat in jou arms lê. Want die seun hou sy vader vir 'n dwaas; die dogter kom in opstand teen haar moeder, 'n skoondogter teen haar skoonmoeder en 'n man se eie huismense is sy vyande. Maar ek sal vir die Here op die uitkyk wees, ek sal bly wag op die God wat my verlos. My God sal my hoor. Moet jou nie oor my verlustig nie, my vyand. Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die Here is vir my 'n lig. Die striemende toorn van die Here sal ek dra – want ek het teen Hom gesondig – totdat Hy my saak verdedig en my reg handhaaf. Hy sal my uitlei na die lig; ek sal sy geregtigheid met genoegdoening ervaar. My vyand sal dit sien en deur skaamte oorval word, sy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?” My oë sal met genoegdoening na haar kyk. Sy sal dan vertrap word soos modder op straat. Dit is tyd om jou verdedigingsmure te herbou, dit is 'n tyd daardie wanneer jou grense uitgebrei sal word. Dit is die tyd wanneer hulle tot by jou sal kom, van Assur en die stede van Egipte, ja, van Egipte tot by die Rivier, van see tot see en berg tot berg. Die aarde sal 'n verlate wildernis word oor sy inwoners, oor die vrug van hulle dade. Pas u volk op met u staf, die kleinvee wat u eiendom is, wat eensaam woon in 'n bos in die middel van 'n vrugbare gebied. Laat hulle in Basan en Gilead wei, soos in die ou tyd. “Soos in die dae toe jy uit Egipteland getrek het, sal Ek hom weer wonderwerke laat beleef.” Die nasies sal dit sien en beskaamd staan, sonder al hulle heldhaftigheid. Hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word. Hulle sal stof lek soos 'n slang, soos dié wat op die grond seil. Hulle sal sidderend uit hulle kerkers kom; na die Here ons God sal hulle bewend gaan, ja, hulle sal vir U bang wees. Wie is 'n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi. U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met 'n eed beloof het in die voortyd. Profesie oor Nineve. Boek van die openbaring aan Nahum, die Elkosiet. Die Here is 'n besitlike God, en Hy wreek Hom. Die Here neem wraak met woede. Die Here wreek Hom op sy teenstanders, Hy is toornig teenoor sy vyande. Die Here is geduldig, maar geweldig sterk. Die Here laat beslis niks ongestraf nie. Deur donderstorm en orkaan loop sy pad, wolke is die stof van sy voete. Hy berispe die see en laat dit opdroog; al die riviere laat Hy wegdroog. Basan en Karmel verdor, die bloeisels van Libanon verwelk. Die berge bewe voor Hom, die heuwels stort ineen. Die aarde lê verwoes voor Hom, ja, die wêreld met al sy bewoners. Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen. Die Here is goed, 'n toevlugsoord in tye van bedreiging. Hy sorg vir wie by Hom skuil, maar met 'n vloedgolf vernietig Hy die stad geheel en al, sy vyande agtervolg Hy tot in die duisternis. Wat kan julle teen die Here beplan? Hy rig 'n totale vernietiging aan! Bedreiging sal nie 'n tweede keer toeslaan nie. Selfs al word hulle saamgevleg tot 'n doringskerm, en omring deur rankplante, hulle sal verteer word soos stoppels wat heeltemal droog is. Uit jou het hy weggetrek, hy wat onheil beraam teen die Here, wat boosheid beplan. So sê die Here: “Al was hulle ook in volle sterkte, so baie as wat hulle was, soveel is afgemaai en het verdwyn. ” “Ek het jou verneder, maar Ek sal jou nie weer verneder nie. Daarom gaan Ek sy juk breek wat op jou rus, jou stroppe gaan Ek aan stukke ruk.” Maar die Here beslis oor jou, koning: “Jou naam sal nie meer voortleef nie. In die huis van jou gode sal Ek die gesnede beelde en gegote beelde vernietig. Ek berei jou graf voor, want jy is onbenullig. ” Kyk! Op die berge is die voete van die een wat 'n goeie boodskap bring, wat 'n vredesboodskap laat hoor: “Vier maar jou feeste, Juda! Betaal jou geloftes, want die booswigte sal nooit weer deur jou trek nie; hulle is almal uitgeroei.” Iemand wat uitmekaar jaag, trek teen jou op. Bewaak die vesting, hou die pad dop, gord die heupe vas, monster alle kragte! Want die Here herstel die trots van Jakob soos wat die trots van Israel eers was, al het verwoesters hulle verwoes en hulle wingerdranke vernietig. Sy helde se skilde is rooi; die bekwame manne is geklee in helderrooi; op die strydwaens is vlammende metaal. Op die dag wat Hy voorberei het, word die spiese dreigend gelig. Oor die vlaktes jaag die strydwaens, oor die ooptes storm hulle aan; hulle lyk soos fakkels, soos weerligstrale flits hulle verby. Die koning se offisiere word opgeroep; in gelid struikel hulle in hulle haas om by die stadsmuur te kom. Maar die stormram se skutdak is reeds opgerig. Die sluise van die kanale word oopgeruk, die paleis wankel. Dit staan vas: Sy gaan in ballingskap; sy word weggelei. Haar slavinne kla soos duiwe, en slaan hulleself op die bors. Nineve was op haar dag soos 'n dam water, maar nou stroom dit weg! “Bly staan! Bly staan!” Maar niemand draai om nie. Plunder die silwer! Plunder die goud! Die voorraad is onuitputlik – 'n rykdom kosbare voorwerpe! Verlatenheid, verwoesting, woesteny! Harte krimp ineen, knieë knak, alle heupe sidder, alle gesigte verbleek. Waar is die lêplek van die leeuwyfies, die vreetplek van die jong leeus, die plek waar die leeu, die maanhaar, rondgeloop het, waar 'n jong leeu tuis was sonder dat iemand hom skrikmaak? Ja, waar is die leeu wat genoeg verskeur het vir sy welpies, doodgewurg het vir sy wyfies? Hy het sy blyplekke gevul met buit, sy lêplekke met verskeurde prooi. “Dis Ek teen jou, Nineve!” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Ek sal jou strydwaens in rook laat opgaan; die swaard sal jou jong leeus verteer; wat jy gebuit het, sal Ek van die aarde af verdelg. Die stem van jou gesante sal nie weer gehoor word nie.” Wee die stad van bloed! Sy is geheel en al net leuens; van wat geroof is, is sy vol, en die rooftogte hou nie op nie! Die klank van swepe! Die klank van wiele wat dreun! Perde wat voortstorm, strydwaens wat bokspring. Ruiters is op die voorpunt – flitsende swaarde, blitsende spiese! 'n Menigte gewondes, 'n magdom lyke, tallose liggame – hulle struikel oor hulle dooies! Alles as gevolg van die hoerery van die prostituut, die aanvallige meesteres van heksery, wat nasies verkwansel het deur haar hoerery, volksgroepe deur haar heksery. “Dis Ek teen jou, Nineve!” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Ek sal jou some oor jou gesig oplig; Ek sal die nasies jou naaktheid laat sien, koninkryke jou skaamte. Ek gaan vullis op jou uitgooi en jou met minagting behandel. Ek gaan van jou 'n toonbeeld van vernedering maak. Dan sal elkeen wat jou sien, van jou af wegvlug en sê, ‘Nineve is verwoes! Wie sal meegevoel met haar hê? Waar sal ek iemand kry wat jou kan troos? ’ ” Is jy beter as No-Amon, gevestig aan die Nyl en omring deur water, waarvan die voormuur 'n see van water was, waarvan die stadsmuur ook water was? Kus is talryk en ook Egipte, Put en die Libiërs eindeloos in getal, hulle was haar helpers. Selfs sy was bestem vir ballingskap; sy moes in gevangenskap gaan. Ook háár kleuters is verbrysel op al die straathoeke. Oor haar edelmanne is geloot, al haar vername mense is met kettings geboei. Ook jy sal dronk word en verward wees. Ook jy sal 'n toevlugsoord teen vyande soek. Al jou versterkte stede is vyebome met vroeë vye; as die bome geskud word, val die vye in die eter se mond. Kyk, die manskappe in jou midde is soos vrouens. Vir jou vyande staan die poorte van jou land wawyd oop; vuur het jou sluitbalke reeds verteer. Skep maar vir jou water vir die beleg! Versterk maar jou versterkte stede! Gaan kleigat toe en trap die klei! Vat die steenvorm vas! Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou afmaai. Dit sal jou verorber soos voetgangersprinkane. Vermeerder maar soos voetgangersprinkane, word maar so baie soos treksprinkane! Jy het jou handelaars meer gemaak as die sterre aan die hemel, maar voetgangersprinkane vervel en vlieg weg! Die mense aan jou hof is soos treksprinkane, en jou amptenare soos 'n swerm sprinkane wat op 'n koue dag op die mure sit – as die son deurbreek, vlieg hulle weg. Die plek waarheen hulle gaan, is onbekend. Koning van Assirië, jou herders slaap; jou vername mense rus. Jou manskappe is verstrooi oor die berge; niemand bring hulle bymekaar nie. Daar is geen herstel vir jou ineenstorting nie. Jou wond is ongeneeslik. Almal wat die nuus oor jou hoor, sal daaroor hande klap, want wie het nie voortdurend onder jou wreedheid deurgeloop nie? Die profesie. Dit is wat Habakuk, die profeet, gesien het. Hoe lank nog, Here? Ek roep om hulp, maar U luister nie; ek roep uit na U, “geweld!” maar U verlos nie? Waarom laat U my onreg ervaar, en leed, terwyl U toekyk? Vernietiging en geweld is reg voor my. Twis ontstaan en rusie neem toe. Daarom het die wet sy krag verloor, en tree die reg glad nie meer na vore nie; maar goddeloses omsingel die regverdige. Daarom is die reg so verdraaid. “ Kyk na die nasies en let op; wees verslae, verstom; want daar gaan iets in julle dae gebeur; julle sal dit nie glo as dit vertel word nie! Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek – die verbitterde en voortvarende nasie – wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie. Skrikwekkend, vreesaanjaend is hierdie nasie; van homself gaan sy reg en oppermag uit. Vinniger as luiperds is sy perde, ratser as wolwe in die skemer. Sy ruiters kom aangejaag, sy ruiters wat van ver af kom. Hulle vlieg soos arende wat afduik om te vreet. Elkeen is uit op geweld; hulle hele voorhoede is 'n oostewind; dit maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Hierdie nasie dryf met konings die spot, en regeerders is vir hom 'n grap. Vir elke versterkte stad lag hy; hy hoop grond teen die stadsmuur op, en neem dit in. Dan gaan die wind verder en steek grense oor; en hy word skuldig, die een wie se krag sy god is.” Bestaan U dan nie van altyd af nie, Here, my God, my Heilige? Ons gaan tog nie sterf nie? Here, het U hom bestem as oordeel? O Rots, het U hom beskik as teregwysing? U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle? U maak mense soos visse van die see, soos krioelende seediere wat nie 'n heerser het nie. Met sy hoek trek hy hulle almal uit; hy sleep hulle uit in sy skepnet en versamel hulle in sy fuik. Daarom is hy bly en juig; daarom offer hy vir sy skepnet en brand hy reukwerk vir sy fuik; want danksy sy nette is sy deel van die buit vet en is sy maaltyd ryk. Sal hy sy skepnet so bly uitskud en aanhou om nasies genadeloos uit te moor? Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Die Here het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe. Buitendien, wyn is verraderlik. Die sterke is vermetel, maar hy sal nie sy doel bereik nie, hy wat sy keel so wyd oopsper soos die •doderyk, hy wat soos die dood is, wat nie versadig word nie, wat al die nasies by hom versamel het, en al die volke om hom bymekaargemaak het. “ Sal juis hulle nie almal saam oor hom 'n spotlied laat opklink nie, ja, 'n spreuk, raaisels oor hom? Daar sal gesê word, ‘Wee hom wat dít vermeerder wat nie aan hom behoort nie – hoe lank nog? – wat homself met bruikleen belas. Sal dié wat van jou rente gaan eis, nie skielik opstaan nie, ja, dié vir wie jy beangs is, wakker skrik, en jy dan die buit vir hulle word? Omdat jy baie nasies geplunder het, sal al die volke wat oorbly, jou plunder oor die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon.’ “ Wee hom wat onregverdige wins maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou en homself van die mag van onheil te red. “Jy het skande bewerk vir jou huis; deur 'n einde te maak aan baie volke, het jy jou lewe verbeur. Want klippe roep uit die mure om hulp, en balke uit die houtwerk antwoord hulle. “ Wee hom wat stede bou met bloed, en dorpe vestig met onreg. Kyk, is dit nie die Here, Heerser oor alle magte, wat dit beskik, dat volke hulle afsloof vir wat opgaan in rook, en nasies hulleself moeg maak vir niks nie? Ja, die aarde sal gevul word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos water die see oordek. “Wee hom wat sy medemens laat drink, wat sy gif daarby voeg, hulle selfs dronk maak, sodat hy hulle geslagsdele kan bekyk. Ja, jy gaan met skande versadig word, in plaas van eer. Drink jy ook, en ontbloot jouself! Die beker in die regterhand van die Here sal by jou verbykom, en skande sal jou eer oortref. Want die geweld teen Libanon sal jou oorweldig en die vernietiging van diere sal jou beangs laat, ja, die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon. “ Watter nut het 'n gesnede beeld as sy maker hom uitgekerf het? Dit is 'n gegote beeld en 'n leermeester van leuens. Ja, hy vertrou op die maaksel wat hy self geskep het. Wat baat dit om stom, nuttelose afgodsbeelde te maak? Wee hom wat vir 'n stuk hout sê, ‘Word tog wakker!’ en ‘Staan op!’ vir 'n stom klip. Kan dié ding jou iets leer? Kyk, hy is wel oorgetrek met silwer en goud, maar daar is geen lewensasem in nie. Maar die Here is in sy •heilige •tempel – wees stil voor Hom, o ganse aarde!” 'n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot. Here, toe ek van u roem gehoor het, is ek met ontsag vervul. U dade, Here, maak dit 'n werklikheid in hierdie tye; laat dit in hierdie tye bekend word. Onthou om barmhartig te wees te midde van ontsteltenis. Toe God uit Teman kom, die Heilige van die Paranberge, het sy luister die hemelruim bedek, sy lof die aarde gevul. Skitterend soos sonlig was die ligstrale uit sy hand; daarin het krag geskuil. Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae. Hy het gaan staan, en die aarde laat bewe; Hy het net gekyk, en die nasies laat opspring. Die oeroue berge het verbrokkel, die ewige heuwels het laag gebuk. Die ewige wentelbane van die sterre behoort immers aan Hom. Ek het gesien die tente van Kusan verkeer in nood, die tentdoeke van die land Midian sidder. Here, het u toorn teen die riviere ontbrand? Is u toorn teen die riviere, of is u gramskap teen die see gerig, dat U met u perde op u strydwaens ry vir verlossing? U boog is heeltemal ontbloot, “sewe knuppels!” was die bevel; vir strome kloof U die aarde oop. In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat. U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek. U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in 'n skuilplek te verslind. U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa. Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, 'n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval. Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop. Vir die •musiekleier. Met snarespel. Dit is die woord van die Here aan Sefanja, seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia in die tyd van Josia, seun van Amon, koning van Juda. “Ek gaan beslis alles van die aardbodem af uitwis, ” is die uitspraak van die Here. “Ek gaan mens en dier uitwis. Ek gaan die voëls van die hemel en die visse in die see uitwis – ook die struikelblokke saam met die goddeloses. Ek gaan die mensdom uitdelg van die aardbodem af,” is die uitspraak van die Here. “Ek gaan my hand teen Juda en al die inwoners van Jerusalem uitstrek. Ek gaan uit hierdie plek alles wat van Baäl oorgebly het, uitroei, die name van die afgodsdienaars, asook die priesters. Ook diegene wat op die dakke voor die hemelliggame neerbuig; diegene wat neerbuig, wat by die Here 'n eed sweer én ook by hulle koning 'n eed sweer; diegene wat van die Here af weggedraai het, hulle wat die Here nie opsoek nie en Hom nie raadpleeg nie.” Wees stil voor my Heer, die Here, want die dag van die Here is naby. Ja, die Here het 'n offer voorberei; Hy het sy genooides geheilig. “En op die Here se offerdag gaan die volgende gebeur: Ek gaan afreken met die leiers, met die koning se seuns en almal wat uitlandse klere dra. Ek gaan op daardie dag afreken met elkeen wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle heersers met geweld en bedrog vul. “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “klink daar 'n noodkreet uit die Vispoort, 'n gekerm uit die nuwe stadsdeel, 'n groot gekraak uit die heuwels. Weeklaag, inwoners van die markdistrik, want al die handelaars het stil geword; almal wat silwer afweeg, is uitgeroei. In daardie tyd gaan dít gebeur: Ek gaan Jerusalem met lampe fynkam, Ek gaan afreken met die manne wat verdik op hulle droesem, wat in hulle hart sê, die Here doen nie goed nie en Hy doen nie kwaad nie. Hulle rykdom gaan buit word en hulle huise sal verlate staan. Hulle gaan huise bou, maar nie daarin woon nie; hulle gaan wingerde plant, maar nie die wyn daarvan drink nie. “ Naby is die groot dag van die Here, naby en baie vinnig aan die kom. Luister! Die dag van die Here! Dan skreeu die held bitterlik! Daardie dag is 'n dag van gramskap, 'n dag van benoudheid en kwelling; 'n dag van verwoesting en vernietiging, 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis, 'n dag waarop die •ramshoring en oorlogskrete oor die versterkte stede en oor die hoë hoektorings weergalm. “ Ek gaan die mensdom in die noute bring, hulle sal soos blindes voortstrompel, want hulle het teen die Here gesondig. Hulle bloed sal uitgegiet word soos stof, hulle ingewande soos uitwerpsel. “Nóg hulle goud, nóg hulle silwer sal hulle kan red op die dag van die Here se gramskap. In die vuur van sy drif sal die hele aarde verteer word; ja, 'n gruwelike verwoesting bring Hy oor al die aardbewoners.” Kom byeen, kom bymekaar, skaamtelose nasie, voor die bestemde tyd aanbreek – 'n dag vergaan soos kaf! – voordat die Here se brandende toorn julle inhaal, voordat die dag van die Here se toorn julle inhaal. Soek die Here, al die nederiges van die land wat sy opdrag uitgevoer het. Soek geregtigheid, soek nederigheid; miskien vind julle 'n skuilplek op die dag van die Here se toorn. Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan 'n woesteny word. Asdod sal helder oordag uitgedryf word en Ekron sal ontwortel word. Wee julle, Kretensers, inwoners van die kusstreek! Die woord van die Here is teen julle. Kanaän, land van die Filistyne, “Ek sal jou vernietig, tot daar geen inwoners oor is nie.” Die kusstreek sal vir skaapwagters weivelde wees en vir kleinvee krale. Die streek sal behoort aan die oorblyfsel van die huis van Juda; hulle sal daar wei en saans in Askelon se huise gaan lê; want die Here, hulle God, sal vir hulle sorg en hulle lot verander. “Ek het die gespot van Moab gehoor, die skeldtaal waarmee die kinders van Ammon my volk spot en op hulle grondgebied neersien. “Daarom, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, “Moab sal soos Sodom word en die kinders van Ammon soos Gomorra: 'n gebied oortrek met onkruid, vol soutputte, 'n onherbergsame plek vir altyd. Die oorblyfsel van my volk sal hulle stede plunder en die res van my nasie sal hulle gebied as erfdeel verkry.” Dit is wat hulle verwaandheid oor hulle gebring het, hulle het immers die volk van die Here, Heerser oor alle magte, gespot en op hulle neergesien. Vreesaanjaend sal die Here vir hulle wees; Hy het immers al die gode van die aarde laat wegkwyn. So sal dan elke bewoner van al die eilande, elkeen vanuit sy woonplek, diep voor Hom neerbuig – “Ook julle, Kussiete, wat deur my swaard deurboor is.” Hy sal sy hand teen die noorde uitstrek en Assirië vernietig; Hy sal Nineve 'n verlate plek maak, dor soos 'n woestyn. Troppe vee, allerhande diere sal daar gaan lê, bontkraaie en uile sal op die pilare oornag en hulle geluide sal deur die vensters weerklink. Puin sal op die drumpel lê, ja, die sederhout sal rondlê. Dít is wat sal word van die uitbundige stad wat so kommervry leef, wat in haar hart sê: Ek is die een, niemand anders nie. Hoe verlate is sy, 'n lêplek vir diere. Elkeen wat daar verbyloop, sal fluit en sy hande saamslaan. Wee die gewelddadige stad, so vuil en besoedel! Sy het na geen stem geluister nie, geen teregwysing aanvaar nie. Op die Here het sy nie vertrou nie, tot haar God het sy nie genader nie. Die •hoë amptenare in die stad is brullende leeus, haar regters is nagwolwe wat niks tot die oggend laat oorbly nie. Haar profete is vermetel, verraderlike mense, haar priesters ontheilig wat heilig is, en doen die wet geweld aan. Die Here is regverdig in die stad, Hy doen geen onreg nie. Oggend na oggend gee Hy sy beslissings as die lig, dit ontbreek nooit nie; maar die boosdoener ken geen skaamte nie. “Ek het nasies uitgewis, hulle hoektorings staan verlate. Ek het hulle strate in puin gelê – niemand loop daar nie. Hulle stede lê verwoes – sonder mense, sonder inwoners. Ek het gedink, jy sal beslis vir My ontsag hê, jy sal die teregwysing aanvaar. Dan sou haar woonplek nie verwoes word nie – alles wat Ek oor haar bepaal het. Maar nogtans was hulle ywerig om net slegte dade te bly doen. Daarom moet julle My verwag,” is die uitspraak van die Here, “daardie dag as Ek opstaan vir die buit. Want my beslissing is: om nasies te versamel en koninkryke bymekaar te maak, om my verontwaardiging, al my brandende toorn, oor hulle uit te giet; want deur die vuur van my drif sal die hele aarde verteer word. “Ja, daarna sal Ek weer volke se lippe rein maak, sodat almal die Here se Naam aanroep, en Hom skouer aan skouer dien. Van anderkant die riviere van Kus sal hulle wat My aanbid, wat Ek verstrooi het, offers aan My bring. Op daardie dag sal jy jou nie skaam oor al jou dade waarmee jy teen My in opstand gekom het nie, want dan sal Ek jou hoogmoedige grootpraters uit jou midde verwyder. Jy sal nie langer selfvoldaan wees op my heilige berg nie. Ek sal in jou midde 'n nederige en arm volk laat oorbly, en hulle sal in die Here se Naam skuiling vind. Die oorblyfsel van Israel sal nie onreg doen en leuens vertel nie; 'n bedrieglike tong sal nie in hulle mond te vinde wees nie. Ja, hulle is diegene wat sal wei en gaan lê, sonder dat iemand hulle opjaag.” Jubel van vreugde, dogter van Sion, roep dit uit, Israel! Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem! Die Here het die oordele oor jou afgewend, jou vyande uit die weg geruim. Die Koning van Israel, die Here, is in jou midde; jy sal geen onheil meer vrees nie. Op daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie vrees nie, Sion; Moenie dat jou moed jou begewe nie. Die Here jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” “Die getreur by die fees sal Ek van jou af wegneem, dit is 'n las op jou, 'n skande. Kyk, Ek sal dan afreken met almal wat jou in daardie tyd verdruk het. Ek sal die verlamdes verlos, en hulle wat uitmekaar gejaag is, bymekaar maak. Ek sal hulle roem en aansien gee in elke land waar hulle verneder is. In daardie tyd sal Ek julle laat kom, terselfdertyd sal Ek julle bymekaarmaak. Ja, Ek sal vir julle onder al die nasies op aarde aansien en roem gee wanneer Ek julle lot voor julle oë verander,” sê die Here. In die tweede regeringsjaar van koning Darius, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die Here by monde van die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en tot Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Hierdie volk sê die tyd is nog nie ryp om die Here se huis te herbou nie.’ ” Die woord van die Here het gekom by monde van die profeet Haggai: “ Is die tyd dan wel vir julle ryp om in huise met houtpanele te woon, terwyl hierdie huis 'n bouval is? Daarom,” so sê die Here, Heerser oor alle magte, “neem ter harte wat julle beleef het: Julle het baie gesaai, maar dit het min opgelewer; julle eet, maar word nie versadig nie; julle drink, maar julle dors word nie geles nie; julle trek aan, maar word nie warm nie. Wie homself uithuur, doen dit vir 'n beursie vol gate.” So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Neem ter harte wat julle beleef het: Gaan teen die berge uit, bring hout en herbou my huis; dit sal vir My vreugde verskaf en Ek sal daardeur verheerlik word.” Dit is wat die Here sê. “Julle verwag baie, maar kyk, julle kry bloedweinig. As julle iets huis toe bring, blaas Ek dit weg. “En waarom? Omdat my huis 'n bouval is, terwyl elkeen van julle rondhardloop vir sy eie huis.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Daarom het die hemel bo júlle die dou teruggehou en die aarde sy opbrengs. Ek het droogte uitgeroep oor die land en oor die heuwels, oor die koring, die •nuwe wyn en die olie, oor alles wat die grond oplewer; oor mens en dier en alles wat met moeite tot stand gebring is.” Serubbabel, seun van Sealtiël, en Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak, en almal wat oor was van die volk, het geluister na die stem van die Here hulle God en ag geslaan op die woorde van Haggai, die profeet, toe die Here hulle God hom gestuur het. Die volk was bang vir die Here, maar Haggai, die boodskapper van die Here, het in opdrag van die Here vir die volk gesê: “Ek is met julle! Dit is die uitspraak van die Here. ” Toe het die Here Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en almal wat oor was van die volk, begeester. Hulle het begin om die werk aan die huis van die Here, Heerser oor alle magte, hulle God, aan te pak. Dit het gebeur op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius. Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here gekom by monde van die profeet Haggai: “Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, ‘ Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die Here. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die Here. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ” “ Die Here, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. ‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” Op die vier-en-twintigste dag van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Haggai: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Vra vir die priesters 'n beslissing hieroor: As iemand heilige vleis in die vou van sy kleed dra en hy raak met die vou van sy kleed aan brood of gekookte kos, of wyn of olyfolie, of enige kos, word dit dan heilig?’ ” Die priesters se antwoord was: “Nee.” Haggai vra toe: “As iemand wat •onrein is deur aanraking met 'n lyk aan enige van hierdie dinge raak, is dit dan onrein?” Die priesters het geantwoord: “Dit sal onrein wees.” Hierop sê Haggai toe: “Dit is hoe hierdie volk is, ja, dit is hoe hierdie nasie voor My is, is die uitspraak van die Here, en ook al die werk van hulle hande: Alles wat hulle daar offer, is onrein.” “Daarom dan, neem voortaan ter harte hoe dit met julle gegaan het voordat klip op klip in die •tempel van die Here gelê is: As iemand na 'n koringmied van twintig mate gegaan het, was daar maar net tien! As hy na die parskuip gegaan het om vyftig mate wyn uit die kuip te skep, was daar maar net twintig. Ek het julle getref met skimmel en witroes en hael, ja, al die werk van julle hande, maar julle wou nie na My terugkeer nie, is die uitspraak van die Here. “ Neem ter harte hoe dit van vandag af gaan wees, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondament van die tempel van die Here gelê is; ja, neem dit ter harte. Is daar nog saad in die stoorkamer? Die wingerd, die vyebome, granate en olyfbome het nie eers gedra nie! Van vandag af sal Ek julle seën.” Dit is die tweede woord van die Here tot Haggai op die vier-en-twintigste dag van die maand: “Sê vir Serubbabel, die streekgoewerneur van Juda, ‘Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe. Ek gaan die koninklike trone omverwerp en die nasies se magtige koninkryke verwoes. Ek gaan die strydwaens met hulle drywers omkeer; die perde sal neerval en die ruiters sal mekaar met die swaard ombring. “ ‘Op daardie dag,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, ‘sal Ek jou, my dienaar, Serubbabel, seun van Sealtiël, neem,’ is die uitspraak van die Here, ‘en Ek sal jou soos 'n seëlring maak omdat Ek jou uitverkies het.’ Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” In die tweede regeringsjaar van koning Darius, in die agtste maand, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria, seun van Beregja en kleinseun van Iddo: “Die Here was vol grimmigheid teen julle voorouers. Sê vir die mense, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer. ” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “ ‘Die Here, Heerser oor alle magte, sê: “Moenie wees soos julle voorouers nie, hulle aan wie die vroeëre profete verkondig het, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Draai tog weg van julle verkeerde paaie en van julle verkeerde dade!” ’ Maar hulle het nie geluister en hulle nie aan My gesteur nie, is die uitspraak van die Here. ” “ ‘ “Julle voorouers, waar is hulle nou? En die profete, leef hulle vir altyd? Maar my woorde en voorskrifte, wat Ek my dienaars die profete beveel het, het dit nie julle voorouers ingehaal nie? Hulle het tot inkeer gekom en erken, ‘Soos wat die Here, Heerser oor alle magte, beplan het om aan ons te doen, in ooreenstemming met ons lewe en ons dade, so het Hy met ons gedoen.’ ” ’ ” Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, was dít die woord van die Here aan die profeet Sagaria, seun van Beregja en die kleinseun van Iddo. In die nag het ek gesien: Kyk, daar was 'n man wat op 'n vosperd gery het. Hy het in die diep vallei tussen die mirtestruike gestaan. Agter hom was daar nog perde, bruines, vosperde en wittes. Toe vra ek: “Wat beteken dit, my heer?” En die engel wat met my praat, antwoord my: “Ek sal jou wys wat dit beteken.” Die man wat tussen die mirtestruike staan, het geantwoord en gesê: “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om die aarde te deurkruis.” En hulle het die •engel van die Here wat tussen die mirtestruike gestaan het, geantwoord en gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die hele aarde is stil en rustig.” Daarop het die engel van die Here weer gepraat en gevra: “ Here, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan U nog u ontferming weerhou van Jerusalem en die dorpe van Juda, teen wie U nou al sewentig jaar lank ontstoke is?” Die Here het toe die engel wat met my praat, met vriendelike en troosvolle woorde geantwoord. En toe sê die engel wat met my praat, vir my: “Roep dit uit! So sê die Here, Heerser oor alle magte: ‘Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion; maar Ek is vol fel grimmigheid teen die selfvoldane nasies. Ek was eers minder grimmig, maar hulle het die onheil vererger.’ “ ‘Daarom,’ so sê die Here, ‘keer Ek vol ontferming terug na Jerusalem. My huis sal daar gebou word, en Jerusalem sal met 'n maatlyn uitgemeet word.’ Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. En verkondig ook verder: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘My stede sal weer oorloop van goeie dinge. Die Here sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies.’ ” ’ ” Ek het opgekyk en gesien: Daar was vier horings! Ek het die engel wat met my praat, gevra: “Wat beteken dit?” En hy het my geantwoord: “Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.” Toe wys die Here vir my vier ambagsmanne. En ek vra: “Wat kom hierdie manne doen?” Hy het geantwoord: “Dit is die horings wat Juda só verstrooi het dat niemand sy kop kon optel nie. En hierdie manne het gekom om die horings te verskrik en neer te gooi, die horings van die nasies wat die horing teen Juda gelig het om hulle te verstrooi.” Ek het opgekyk en gesien: Daar is 'n man met 'n maatlyn in sy hand! “Waar gaan u heen?” vra ek. Hy antwoord my: “Ek gaan Jerusalem opmeet om sy breedte en lengte vas te stel.” Kyk, die engel wat met my praat, was besig om weg te gaan toe 'n tweede engel hom tegemoet kom en vir hom sê: “Hardloop en sê vir daardie jong man, ‘Jerusalem sal soos 'n stad sonder mure wees omdat so baie mense en diere daar woon. Ek self sal 'n muur van vuur rondom Jerusalem wees, en Ek sal heerlikheid in hulle midde wees.’ Dit is die uitspraak van die Here.” “Kom, kom! Vlug uit die noorde!” is die uitspraak van die Here. “Want so ver as die vier windstreke van die hemel het Ek julle verstrooi,” is die uitspraak van die Here. “Kom! Vlug weg, Sion, julle wat by die dogter van Babel woon!” Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, wat my ter wille van sy heerlikheid gestuur het na die nasies deur wie julle uitgebuit is: “Waarlik, wie aan julle vat, vat aan die appel van my oog. Ja, kyk, Ek sal my hand heen en weer oor hulle swaai, en hulle sal buit word vir hulle eie slawe.” Dan sal julle weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my gestuur het. “ Juig en wees bly, dogter van Sion! Want, kyk, Ek kom in jou midde woon,” is die uitspraak van die Here. “Baie nasies sal hulle op daardie dag aan die Here verbind. Hulle sal my volk word, en Ek sal in jou midde woon.” Dan sal jy weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my na jou gestuur het. Die Here sal Juda op die heilige grond as sy erfdeel in besit neem en Jerusalem weer verkies. Wees stil voor die Here alle mense, want Hy tree te voorskyn uit sy heilige woonplek. Toe het Hy die hoëpriester Josua aan my gewys. Hy staan voor die •engel van die Here met Satan wat hom aankla aan sy regterkant. En die Here sê aan Satan: “Die Here straf jou, Satan! Die Here wat Jerusalem verkies het, sal jou straf! Is hierdie man nie 'n stuk brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” Josua het in besmeerde klere voor die engel gestaan. Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: “Trek sy besmeerde klere uit.” Vir Josua het hy gesê: “Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek.” Daarop sê ek: “Laat hulle 'n skoon •tulband om sy kop draai.” Terwyl die engel van die Here daar staan, het hulle die skoon tulband om sy kop gedraai en vir hom die klere aangetrek. En die engel van die Here het Josua verseker: “ So sê die Here, Heerser oor alle magte: As jy op my paaie loop, en as jy my voorskrifte nakom, dan sal jy my huis regeer en dan sal jy my voorhowe bewaak. Ek sal jou vrye toegang gee tot diegene wat hier staan. Luister tog, Josua, hoëpriester, jy en jou medepriesters wat voor jou sit, manne wat as 'n teken dien; want kyk, Ek gaan my dienaar, die Loot, laat kom. Kyk daarom na die steen wat Ek voor Josua neergesit het, 'n enkele steen met sewe oë. Kyk, Ek sal 'n inskripsie daarop graveer en Ek sal die sondeskuld van hierdie land in een enkele dag wegneem,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Op daardie dag,” is 'n uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal julle mekaar uitnooi om onder die wingerdstok en die vyeboom te kom sit.” Die engel wat met my praat, het teruggekom en my wakker gemaak, soos iemand wat uit sy slaap wakker gemaak word. Hy het my gevra: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek het gesien: Kyk, daar was 'n menora van soliede goud. Bo-op was 'n oliebak met sewe lampe, elkeen met sewe tuite. Weerskante was daar ook twee olyfbome, een aan die regterkant van die oliebak en een aan die linkerkant.” Toe antwoord ek die engel wat met my praat en sê: “Wat beteken dit, my heer?” Die engel wat met my praat, het geantwoord en gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” En ek het gesê: “Nee, my heer.” Toe het hy geantwoord en vir my gesê: “Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel, ‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel word jy 'n vlakte. Hy sal die sluitsteen naderbring onder uitroepe van, “Genade, genade hiervoor!” ’ ” Dít was die woord van die Here aan my: “ Die hande van Serubbabel het die fondament van hierdie huis gelê en sy hande sal dit voltooi. Dan sal jy weet dit is die Here, Heerser oor alle magte, wat my na julle gestuur het. Want wie het die dag van klein dinge gering geskat? Hulle sal bly wees en sal die skietlood in die hand van Serubbabel sien.” Hierdie sewe is die oë van die Here wat die hele aarde deurkruis. Toe het ek weer gepraat en gevra: “Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regter- en linkerkant van die menora?” Ek het 'n tweede keer gepraat en hom gevra: “Wat beteken die twee olyftakke waaruit die goue olie deur die goue pype vloei?” Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” En ek het gesê: “Nee, my heer.” Toe sê hy vir my: “Hulle is die twee gesalfdes wat by die Heer van die hele aarde staan.” Ek het weer opgekyk en gesien: Daar was 'n vlieënde •boekrol! Die engel sê toe vir my: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: “Ek sien 'n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.” Daarop sê hy vir my: “Dit is die vloek wat oor die hele land uitgestuur word: Volgens die een kant van die boekrol sal elkeen wat steel, uitgewis word en volgens die ander kant van die boekrol sal elkeen wat vals sweer, uitgewis word. Ek het die vloek uitgestuur,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Dit sal die huis van 'n dief binnedring en ook die huis van elkeen wat by my Naam vals sweer. Die vloek sal in sy huis bly en dit verwoes, die hout en ook die klippe.” Daarop tree die engel wat met my praat na vore en sê vir my: “Kyk tog mooi en let op wat hier aankom.” Toe sê ek: “Wat is dit?” En hy antwoord: “Dit is 'n graanmandjie wat hier aankom.” En hy sê verder: “Dit is die sondeskuld van die hele land.” Meteens word die looddeksel opgelig, en daar sit 'n vrou binne-in die mandjie. En die engel sê: “Dit is die goddeloosheid.” Hy het haar in die mandjie teruggedruk en die looddeksel oor die opening geplaas. Toe ek opkyk, sien ek: Daar kom twee vroue aan met wind in hulle vlerke! Hulle het vlerke soos 'n ooievaar gehad. Hulle het die mandjie opgelig en tussen hemel en aarde laat hang. Ek vra toe die engel wat met my praat: “Waarheen neem hulle die mandjie?” En hy antwoord my: “Na die land Sinar om vir die mandjie 'n huis te bou; en wanneer die huis gereed is, sal die mandjie op sy voetstuk geplaas word.” Toe ek weer kyk, sien ek daar kom sowaar vier strydwaens tussen twee berge uit – die berge was van brons. Die eerste strydwa het vosperde gehad, die tweede swart perde, die derde wit perde, en die vierde strydwa skimmelperde. Dit was sterk perde. Toe begin ek praat en vra vir die engel wat met my gepraat het: “Wat beteken dit, meneer?” En die engel antwoord my en sê: “Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle voor die Heer van die hele aarde verskyn het. Die strydwa met swart perde gaan na die noordelike gebiede, die wittes gaan agterna en die skimmel gaan na die suidelike gebiede. Hierdie sterk perde het uitgetrek, gretig om die aarde te deurkruis, want die Heer het gesê, ‘Gaan, deurkruis die aarde!’ En hulle het die aarde deurkruis.” Die engel het hard na my geroep en verklaar: “Kyk, hulle wat na die noordelike gebiede gaan, bring my Gees tot rus in daardie gebiede.” Dit was die woord van die Here aan my: “Neem geskenke van die ballinge, Geldai, Tobia en Jedaja, wat uit Babel gekom het, en gaan self op dieselfde dag na die huis van Josia, seun van Sefanja. Neem dan silwer en goud, maak 'n kroon en plaas dit op die kop van die hoëpriester Josua, seun van Josadak. “ Sê dan vir hom: ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, “Hier is 'n man wat Loot genoem word. Daar waar hy is, sal hy uitspruit en die •tempel van die Here bou. Hy is die een wat die tempel van die Here sal bou, hy is die een wat koninklike eer sal uitstraal. Hy sal sit en heers op sy troon. Daar sal ook 'n priester op sy eie troon wees en daar sal eenstemmigheid wees tussen hulle twee. En die kroon sal in die tempel van die Here bly ter herinnering aan Gelem, Tobija, Jedaja en Gen, seun van Sefanja. Mense sal van ver af kom om aan die tempel van die Here te bou. Dan sal julle weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my na julle gestuur het. Dit sal gebeur as julle getrou luister na die stem van die Here julle God. ” ’ ” In die vierde regeringsjaar van koning Darius, op die vierde dag van die negende maand, Kislef, was dít die woord van die Here aan Sagaria. Bet-El het Sar-Eser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die Here se guns te soek. Hulle moes vir die priesters van die huis van die Here, Heerser oor alle magte, en vir die profete vra: “Moet ek nog in die vyfde maand huil terwyl ek my van baie dinge onthou, soos ek so baie jare lank gedoen het?” Toe was dít die woord van die Here, Heerser oor alle magte, aan my: “ Sê vir die hele volk van die land en vir die priesters, ‘Toe julle in hierdie sewentig jaar in die vyfde en sewende maand gevas en gerou het, het julle werklik om my ontwil gevas? En wanneer julle eet en wanneer julle drink, eet en drink julle nie net soos gewoonlik nie?’ Is dit nie die woorde wat die Here by monde van vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende dorpe nog rustig en bewoon was, en ook die Negev en die Sjefela nog bewoon was?” Daarna was die woord van die Here aan Sagaria: “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Laat die waarheid seëvier in julle regspraak; betoon troue liefde en barmhartigheid aan mekaar. Moenie weduwees, weeskinders, •vreemdelinge en armes verdruk nie; moenie bose planne in julle harte teenoor mekaar bedink nie.’ ” Maar hulle het geweier om te luister; hulle was halsstarrig. Hulle het hulle ore toegestop sodat hulle nie kon hoor nie. Hulle het hulle harte verhard, so hard soos 'n diamant, sodat hulle nie die wet en die woorde gehoor het wat die Here, Heerser oor alle magte, deur sy Gees en deur die vroeëre profete gestuur het nie. Daarom was daar van die kant van die Here, Heerser oor alle magte, 'n baie groot oordeel uit toorn. “ ‘Soos hulle nie geluister het toe daar geroep is nie, so roep hierdie mense en luister Ek nie,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘Ek gaan hulle wegwaai tot tussen al die nasies wat hulle nie geken het nie. Agter hulle sal die land verlate wees; niemand sal daardeur trek of daarheen terugkeer nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verlate plek gemaak.’ ” Dít was die woord van die Here, Heerser oor alle magte: “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Ek is besorg oor Sion, baie besorg. Ek is diep besorg oor haar.’ “ So sê die Here, ‘Ek keer terug na Sion en sal in Jerusalem woon. Jerusalem sal “die getroue stad” genoem word en die berg van die Here, Heerser oor alle magte, sal “heilige berg” genoem word.’ “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand van ouderdom. En die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.’ “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘As dit in daardie dae onmoontlik gelyk het in die oë van hulle wat van hierdie volk oorgebly het, sal dit dan in My oë ook onmoontlik wees?’ ” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die oostelike en westelike streke en hulle bring om in Jerusalem te woon. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, in waarheid en geregtigheid.’ “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Hou moed, julle wat in hierdie dae dié woorde uit die mond van die profete gehoor het, julle wat teenwoordig was op die dag toe die fondament vir die herbou van die •tempel gelê is, die huis van die Here, Heerser oor alle magte! Ja, voor dié dae was daar nie 'n beloning vir die werk van mense en diere nie. Vir wie uitgegaan of teruggekom het, was daar geen veiligheid nie, omdat daar teenstanders was – Ek het al die mense teen mekaar losgelaat. Maar nou sal Ek nie meer teenoor die oorblyfsel van hierdie volk wees soos in vroeër dae nie,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. ‘Want die saad van voorspoed, die wingerd, sal sy vrug lewer, die land sal sy opbrengs lewer, en die hemel sal sy dou gee. Ek sal dit alles as erfenis gee aan die oorblyfsel van hierdie volk. Soos julle, huis van Juda en huis van Israel, 'n vervloeking was onder die nasies, so sal Ek julle daarvan verlos; en julle sal in 'n seënspreuk gebruik word. Moenie bang wees nie! Hou moed!’ “ Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle voorouers My vertoornd gemaak het’, sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘en Ek nie daaroor jammer was nie, so het Ek in hierdie dae My weer voorgeneem om aan Jerusalem en die huis van Juda goed te doen. Moenie bang wees nie! Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei. Julle moenie bose planne in julle harte teen mekaar bedink nie, moenie lief wees daarvoor om vals te sweer nie, want dit is alles dinge wat Ek haat. ’ ” Dit is die uitspraak van die Here. Dít is die woord van die Here, Heerser oor alle magte aan my: “ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Die vasdae in die vierde en vyfde maand en die vasdae in die sewende en tiende maand sal vir die huis van Juda tye van vreugde en blydskap wees, goeie feestye. Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.’ “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer volke en inwoners van baie stede hierheen kom. Die inwoners van een stad sal na 'n ander stad gaan en sê, “Kom, laat ons dadelik gaan om die Here se guns te soek en die Here, Heerser oor alle magte, te raadpleeg. Ek gaan ook!” Baie volke en magtige nasies sal kom om die Here, Heerser oor alle magte, in Jerusalem te raadpleeg en die Here se guns te soek.’ “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van 'n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” ’ ” 'n Profesie. Die woord van die Here het die landstreek Hadrag bereik en rus op Damaskus, want die oog van mense en al die stamme van Israel is gerig op die Here; so ook Hamat, wat daaraan grens, en Tirus en Sidon, al is hulle baie wys. Tirus het vir homself 'n vesting gebou, en silwer opgehoop soos grond, en goud soos modder op straat. Kyk, die Heer sal hom in besit neem en sy rykdom in die see gooi, en hy sal deur vuur verteer word. Askelon sal dit sien en bang word; Gasa sal inmekaar krimp van pyn, ook Ekron, omdat hy in sy verwagting beskaam is. 'n Koning sal uit Gasa verdwyn, en Askelon sal nie bewoon wees nie. 'n Gemengde volk sal in Asdod woon. Ek maak 'n einde aan die hoogmoed van die Filistyne: Ek verwyder die bloederige vleis uit sy mond, die afskuwelike afgodsoffers tussen sy tande. Maar hy wat oorbly, sal ook aan ons God behoort. Hy sal soos familie in Juda wees, en Ekron soos die Jebusiete. Ek sal by my huis kamp opslaan teen die leërs; teen hulle wat verbygaan en terugkom. Geen onderdrukker sal hulle weer oorval nie, want nou waak Ek met my eie oë. Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkiemerrie. Ek sal die strydwaens uit Efraim verdelg en die perde uit Jerusalem; ook die strydboog sal verwoes word. Hy sal vrede aan die nasies verkondig. Sy ryk sal van see tot see strek, en van die Rivier tot aan die uithoeke van die aarde. “En verder, Sion, op grond van die bloed van jou verbond met My sal Ek jou gevangenes uit 'n waterlose opgaarput vrylaat. Julle hoopvolle gevangenes, keer terug na die vesting! Verder maak Ek vandag bekend: Ek sal jou dubbeld beloon. Want Juda span ek vir my soos 'n boog en Efraim is die pyl waarmee ek aanlê. Ek stel jou seuns, Sion, op teen jou seuns, Griekeland. Ek maak jou, Sion, soos die swaard van 'n krygsheld.” Dan sal die Here bo hulle verskyn – soos weerlig sal sy pyl trek. Die Here, die Heer, sal op die •ramshoring blaas – in die stormwinde van die suide sal Hy opruk. Die Here, Heerser oor alle magte, sal hulle beskerm – hulle sal die vyand verslind en met klippe uit 'n slingervel onderwerp. Hulle sal drink en luidrugtig wees soos by 'n wyndrinkery. Hulle sal bloed drink soos wyn, Hulle sal vol word soos 'n offerbak, en vol bloed wees soos die hoeke van 'n altaar. Op daardie dag sal die Here, hulle God, hulle verlos as sy volk, sy kudde, want hulle is die juwele van 'n kroon wat glinster oor sy grondgebied. Waarlik, hoe goed en hoe mooi sal dit wees! Koring sal die jong mans laat gedy, en •nuwe wyn die jongmeisies. Vra vir die Here reën in die tyd van die laatreëns. Die Here wat die donderwolke maak, sal vir hulle stortreën gee en vir die mens groen plante in die veld; want die huisgode beloof bedrieglike dinge, en die waarsêers se visioene is vals. Hulle verkondig vals drome en hulle troos tevergeefs. Daarom trek die mense rond soos kleinvee, hulle kry swaar omdat daar nie 'n herder is nie. “Teen die herders het my toorn ontbrand, die voorbokke gaan Ek straf.” Ja, die Here, Heerser oor alle magte, versorg sy kudde, die huis van Juda; Hy maak hulle soos sy trotse perd in die oorlog. Uit Juda sal die hoeksteen kom, uit hom die tentpen, uit hom die strydboog; uit hom sal alle onderdrukkers saam weggaan. Hulle sal soos krygshelde wees wat in 'n geveg die vyand in die modder van die strate vertrap. Hulle sal veg omdat die Here met hulle is, en hulle sal die vyand se perderuiters verneder. “ Ek sal die huis van Juda sterk maak, en die huis van Josef sal Ek verlos. Ek sal hulle laat terugkom omdat Ek My oor hulle ontferm. Hulle sal wees asof Ek hulle nooit verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God, en Ek sal hulle verhoor. Efraim sal wees soos krygshelde, hulle harte sal vrolik wees soos van wyn. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal van harte juig oor die Here. Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak, want Ek het hulle verlos en hulle sal vermeerder soos voorheen. Ek sal hulle tussen die volke saai en in verre lande sal hulle aan My dink. Hulle sal saam met hulle kinders leef en weer terugkom. Ek sal hulle terugbring uit Egipteland, en uit Assirië sal Ek hulle bymekaarmaak. Na die gebied van Gilead en Libanon sal Ek hulle bring; maar dit sal nie vir hulle voldoende wees nie.” Hulle sal in benoudheid deur die see trek, en Hy sal die golwe in die see verslaan. Al die dieptes van die Nyl sal opdroog. Die trots van Assirië sal tot 'n val gebring word, en die heerskappy van Egipte tot 'n einde kom. “Ek sal hulle sterk maak in die Here; in sy Naam sal hulle leef,” is die uitspraak van die Here. Maak oop jou deure, Libanon, sodat vuur jou sederbome kan verteer! Huil, sipres, want 'n seder het geval, die magtige bome is verwoes! Huil, eike van Basan, want die digte bos is afgekap! Hoor die gehuil van die herders; want hulle aansien is verwoes! Hoor die gebrul van die jong leeus, want die trots van die Jordaan is verwoes! So sê die Here my God: “Pas die kleinvee op wat geslag gaan word! Hulle kopers maak hulle dood sonder om daarvoor te boet, en hulle verkopers sê, ‘Prys die Here, ek word ryk!’ Hulle herders het nie medelye met hulle nie. Ja, Ek sal nie langer medelye met die inwoners van die land hê nie,” is die uitspraak van die Here. “Kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy medemens en van sy koning. Hulle sal die land vernietig en Ek sal niemand uit hulle hande red nie.” Ek het die kleinvee wat geslag gaan word, en aan die kleinveehandelaars behoort, opgepas. Ek het vir my twee herderstokke geneem; die een het ek Welwillendheid genoem en die ander een Samehorigheid. So het ek die kleinvee opgepas. Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het 'n afkeer in my gekry. Toe sê ek: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat sterf, maar sterf; laat dié wat wegraak, maar wegraak; en laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het my herderstok, Welwillendheid, geneem en dit in stukke gebreek, om so die verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. Dit is op daardie dag verbreek. Die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het toe besef dat dit die woord van die Here was. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dit goedvind, gee dan my loon; maar indien nie, laat dit daar.” Hulle het my loon afgeweeg: dertig sikkel silwer. Toe sê die Here vir my: “Gooi dit vir die smelter! Dit is die kosbare prys waarmee Ek deur hulle na waarde geskat is.” Ek het die dertig sikkel silwer geneem en dit in die huis van die Here vir die smelter gegooi. Ek het my tweede herderstok, Samehorigheid, in stukke gebreek om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. Daarop sê die Here vir my: “Neem weer die gereedskap van 'n dwase herder. Want kyk, Ek gaan 'n herder in die land laat opstaan – dié wat wegraak, sal hy nie probeer opspoor nie, die jonges sal hy nie soek nie, dié met gebreekte bene nie gesond maak nie en dié wat uitgeput is, nie voer nie. Maar die vleis van die vet diere sal hy eet; selfs die hoewe sal hy afruk. “Wee die nuttelose herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, en sy regteroog heeltemal blind word!” 'n Profesie. Die woord van die Here oor Israel. Dit is die uitspraak van die Here, Hy wat die hemel oopgespan het en die fondamente van die aarde gelê het, wat die mens se gees in sy binneste gevorm het: “ Kyk, Ek gaan Jerusalem 'n bedwelmende beker wyn maak vir al die volke rondom. Dit sal ook oor Juda kom tydens die beleg van Jerusalem. “Op daardie dag maak Ek Jerusalem 'n swaar klip vir al die volke; elkeen wat dit probeer optel, sal homself ernstig beseer wanneer al die nasies van die aarde teen Jerusalem saamtrek. “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek elke perd met verwarring tref en sy ruiter met waansin. Oor die huis van Juda sal Ek egter my oë oophou, terwyl Ek elke perd van die volke met blindheid slaan. Dan sal die stamhoofde van Juda vir hulleself sê: Die krag van die inwoners van Jerusalem lê by die Here hulle God, die Heerser oor alle magte. “Op daardie dag maak Ek die stamhoofde van Juda soos 'n bak met vuur tussen hout en soos 'n brandende fakkel tussen afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na regs en na links, en Jerusalem sal bly net waar sy is, in Jerusalem. Die Here sal die tente van Juda eerste red, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem nie groter sal wees as dié van Juda nie. “ Op daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Dié onder hulle wat struikel sal op daardie dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid sal wees soos God, soos die •engel van die Here wat voor hulle uitgaan. “ Op daardie dag sal Ek my beywer om al die nasies te vernietig wat teen Jerusalem optrek. Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek 'n gees van genade en 'n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos 'n mens rou oor 'n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos 'n mens huil oor 'n eersgebore kind. “Op daardie dag sal die rouseremonie in Jerusalem net so groot wees soos die rouseremonie oor Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte. Die land sal treur, elke familiegroep op sy eie; die familiegroep van die huis van Dawid op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van die huis van Natan op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van die huis van Levi op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van Simi op sy eie, en hulle vroue op hulle eie; en al die oorblywende familiegroepe, elkeen van hulle op sy eie, en die vroue op hulle eie. “ Op daardie dag sal 'n fontein oopgemaak word waar die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem hulle sondes en •onreinheid kan afwas. “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal Ek die name van die afgode in die land uitwis, sodat hulle nie meer onthou sal word nie; en Ek sal ook die profete en die gees van onreinheid uit die land verwyder. En as iemand nog wil profeteer, sal sy vader en moeder wat hom in die wêreld gebring het vir hom sê, ‘Jy mag nie langer leef nie, want jy het leuens in die Naam van die Here verkondig.’ Sy vader en moeder wat hom in die wêreld gebring het, sal hom deurboor as hy wil profeteer. “ Op daardie dag sal elkeen van die profete skaam wees vir sy visioen toe hy geprofeteer het. Hulle sal nie 'n harige kleed aantrek met die doel om te bedrieg nie, maar sal sê, ‘'n Profeet is ek nie, ek is iemand wat die grond bewerk, want iemand het my in my jeug al as slaaf gekoop.’ As iemand dan vra, ‘Wat is hierdie letsels op jou lyf? ’ sal hy antwoord, ‘Dit is hoe ek geslaan is in my vriende se huis.’ ” “Swaard, word wakker teen my herder, en teen die man uit my gemeenskap,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Vel die herder neer, sodat die kleinvee uitmekaar gejaag word. Ek sal selfs my hand teen die geringes draai. In die hele land sal dit gebeur,” is die uitspraak van die Here, “twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en 'n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos 'n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê, ‘Die Here is ons God.’ ” “Kyk, daar kom 'n dag van die Here! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” Daarna sal die Here optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, 'n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees. Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. Dit sal 'n uitsonderlike tyd wees wat net aan die Here bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word. In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees. Die Here sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die Here die enigste wees, en sy Naam die enigste. Die hele land sal verander word soos die Araba vanaf Geba tot by Rimmon suid van Jerusalem. Jerusalem sal egter uittroon; sy sal gevestig wees op haar plek: van die Benjaminpoort tot by die plek van die vroeëre poort en tot by die Hoekpoort, en van die Gananeltoring tot by die koning se kuipe. Hulle sal daar woon. Daar sal nie meer 'n volledige vernietiging wees nie; Jerusalem sal veilig gevestig wees. Dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat teen Jerusalem optrek: Hy sal hulle liggame laat verrot terwyl hulle nog op hulle voete is; hulle oë sal verrot in hulle oogkaste, en hulle tonge sal verrot in hulle monde. Op daardie dag sal die Here groot verwarring onder hulle veroorsaak. Hulle sal die een die ander se hand gryp en die een teen die ander die hand lig. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdom van al die nasies rondom hulle sal bymekaargemaak word: baie groot hoeveelhede goud, silwer en klere. So sal dieselfde plaag die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere wat in hulle kampe is, tref. Almal wat oorbly uit al die nasies, wat opgeruk het om teen Jerusalem oorlog te maak, sal jaar ná jaar optrek om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig en om die Huttefees te vier. En oor diegene onder die familiegroepe van die aarde wat nie optrek na Jerusalem om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig nie, sal geen reën val nie. As die familiegroep uit Egipte nie optrek en na Jerusalem kom nie, sal daar oor hulle nie reën val nie. Dit sal die plaag wees waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die Huttefees te vier nie. Dit sal die straf wees vir Egipte en die straf vir al die nasies wat nie optrek om die Huttefees te vier nie. Op daardie dag sal op die klokkies van die perde staan “Heilig vir die Here ”, en die kookpotte in die huis van die Here sal soos die offerbakke voor die altaar wees. Elke kookpot in Jerusalem en Juda sal heilig wees vir die Here, Heerser oor alle magte. Almal wat wil offer, sal kom en van die kookpotte neem en daarin kook. Daar sal op daardie dag nie meer 'n handelaar in die huis van die Here, Heerser oor alle magte, wees nie. 'n Profesie. Dit is die woord van die Here tot Israel by monde van Maleagi. “Ek het julle lief,” sê die Here, maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Die uitspraak van die Here is: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob lief, maar van Esau het Ek 'n afkeer en Ek het van sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy erfdeel 'n plek vir die woestynjakkalse.” Ja, Edom sê: “Ons is verpletter, maar ons sal weer die puinhope opbou.” Maar so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Húlle kan maar bou, maar Ék sal afbreek. Hulle sal die goddelose gebied genoem word, en die volk vir wie die Here vir altyd vervloek het.” Met julle eie oë sal julle dit sien en julle sal self erken: “Die Here is groot buite die grense van Israel.” “'n Seun respekteer 'n vader, en 'n dienaar sy heer. As Ek dan 'n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My?” Die Here, Heerser oor alle magte, sê: “Dit geld vir julle, priesters, wat my Naam minag! Maar julle vra, ‘Hoe minag ons u Naam?’ Julle bied besoedelde voedsel aan op my altaar en dan vra julle nog, ‘Hoe het ons U verwerp?’ Omdat julle dink dat die tafel van die Here maar geminag kan word! As julle 'n blinde dier as offer aanbied, is dit mos nie verkeerd nie, en as julle 'n mank of siek dier aanbied, is dit mos nie verkeerd nie! Bied so iets vir jou •streekgoewerneur aan! Sal hy jou aanvaar, sal hy goedgesind wees teenoor jou?” vra die Here, Heerser oor alle magte. Sou julle God dan nou gunstig stem dat Hy ons genadig kan wees, terwyl julle so iets doen? Sal Hy deur júlle toedoen goedgesind wees? Die Here, Heerser oor alle magte het dit gesê. “Was daar maar iemand onder julle wat die tempeldeure kon toesluit, sodat julle nie die vuur op my altaar verniet aan die brand steek nie. Ek is julle nie goedgesind nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “'n Offer uit julle hand is nie vir My aanvaarbaar nie. Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en 'n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Maar julle ontheilig my Naam aangesien julle dink, die tafel van die Heer is besoedel, en oor wat dit bied, dink julle, sy voedsel kan maar geminag word. En dan sê julle, ‘Kyk, watter moeite is dit nie!’ En julle skat dit gering, ” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Julle bring diere wat geroof en mank en siek is, en bied dit as 'n offergawe aan! Moet Ek dit uit julle hand aanvaar?” vra die Here. “Vervloek is iemand wat bedrieg deur 'n gelofte af te lê, maar 'n verminkte dier aan die Heer offer, terwyl daar 'n manlike dier in sy kudde is. Ek is immers die groot Koning,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “en my Naam wek ontsag by die nasies. ” Daarom dan, vir julle geld hierdie beslissing, priesters: “As julle nie luister nie, en dit nie ter harte neem om my Naam te eer nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “sal Ek 'n vloek onder julle instuur en Ek sal dit wat vir julle tot seën moet wees, vervloek. Trouens, Ek het dit reeds vervloek omdat julle die saak nie ter harte neem nie. Kyk, Ek gaan julle en julle nageslag teregwys: Ek gaan pensmis in julle gesigte spat – die pensmis van julle •feesoffers! “Ek sal julle uit my teenwoordigheid verwyder. Dan sal julle besef dat Ek hierdie beslissing oor julle gebring het, sodat my verbond met Levi kan bly bestaan, ” sê die Here, Heerser oor alle magte. “My verbond met hom was bedoel om lewe en vrede te gee; Ek het dit aan hom gegee om ontsag te wek. Hy het vir My ontsag gehad en vir my Naam het hy gesidder. Betroubare onderrig in die wet het uit sy mond gekom en onreg is nie op sy lippe gevind nie. In vrede en opregtheid het hy saam met My geloop en hy het baie laat afsien van sonde. Die lippe van 'n priester moet immers kennis in stand hou. Mense soek onderrig in wat hy sê, omdat hy 'n boodskapper is van die Here, Heerser oor alle magte. Maar júlle het afgewyk van die pad en baie mense laat struikel deur julle onderrig. Julle het die verbond met die Leviete geskend,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Op my beurt sal Ek julle veragte en vernederde mense in die oë van die hele volk maak, omdat julle nie nougeset op my paaie bly nie en menslike voorkeure laat geld in die onderrig van die wet.” Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskep nie? Waarom is ons dan ontrou aan mekaar en ontheilig ons die verbond wat met ons voorouers gesluit is? Juda was ontrou, en iets afstootliks is in Israel en Jerusalem gedoen: Juda het die heiligdom van die Here waarvoor Hy lief is, ontheilig. Juda het met dogters wat vreemde gode dien, getrou. Mag die Here iemand wat dit doen, en wie hom beskerm en verdedig, uit die tente van Jakob uitroei – hy wat 'n offer bring vir die Here, Heerser oor alle magte. Die tweede ding wat julle doen, is dat julle die altaar van die Here met trane bedek, met 'n geween en 'n gesug, omdat Hy nie meer ag slaan op julle offers nie en dit nie gunstig aanvaar nie. En dan vra julle: “Waarom?” Omdat die Here self as getuie optree tussen jou en die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was en teenoor wie jy ontrou is, terwyl sy jou lewensmaat is en 'n vrou van dieselfde verbond as jy. Hy het nie net één mens gemaak nie, maar ook 'n geesgenoot vir die mens, waarna dié een mens op soek was, 'n goddelike geslag. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid. Moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was nie. Want Hy haat egskeiding, het die Here, die God van Israel, gesê. So iemand het hom met geweld omhul, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid: Moenie ontrou wees nie, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. Julle vermoei die Here met julle woorde, en dan vra julle: “Hoe het ons Hom vermoei?” Deur te sê: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die Here, teenoor hulle is Hy goedgesind.” Of julle sê: “Waar is die God wat oordeel?” “Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur en hy sal 'n pad voor My gereedmaak. Onverwags sal hy na sy •tempel kom, die heer na wie julle soek, die boodskapper van die verbond na wie julle uitsien. Kyk, hy gaan kom, ” sê die Here, Heerser oor alle magte. Wie kan die dag van sy koms verduur, wie kan staande bly wanneer hy verskyn? Ja, daardie dag is soos die vuur van die smelter en soos die loog van wassers. Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer. Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer. Hulle sal aan die Here behoort, en offers in geregtigheid bring. Dan sal Juda en Jerusalem se offers weer vir die Here aangenaam wees, soos in die ou dae, soos in vroeër jare. “Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer 'n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat •vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Ek, die Here, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie. Ek sal vir julle die sprinkane berispe, sodat hulle nie die opbrengs van julle landerye verwoes nie, en die druiwestok in die wingerd sal vir julle nie sonder vrugte wees nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “En al die nasies sal julle gelukkig noem, omdat julle 'n begeerlike land sal wees,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Julle laat harde woorde oor My val,” sê die Here. “En dan vra julle, ‘Wat het ons vir mekaar oor U gesê?’ Julle het gesê, ‘Dit is heeltemal nutteloos om God te dien en wat baat dit ons as ons die verpligtinge teenoor Hom nakom en in rouklere loop voor die Here, Heerser oor alle magte? Daarom noem ons nou die verwaande mense gelukkig, want die kwaaddoeners beleef nie net voorspoed nie, maar hulle daag God uit en kom nog daarmee weg ook.’ ” Daarop het dié wat vir die Here ontsag het, met mekaar geredeneer. Die Here het goed geluister en dit gehoor. Dit is toe in sy teenwoordigheid in 'n gedenkboek opgeteken tot voordeel van diegene wat ontsag vir die Here en respek vir sy Naam het. “Hulle sal aan My behoort,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “hulle sal my persoonlike eiendom wees op die dag wat Ek voorberei. Ek sal deernis met hulle hê, soos 'n man deernis het met sy seun wat vir hom werk. Dan sal julle weer die verskil sien tussen regverdiges en wetteloses, tussen wie God dien en wie Hom nié dien nie. “Want kyk, die dag gaan kom, dit gaan brand soos 'n oond. Dan sal al die verwaande mense en elke booswig kaf wees, en die dag wat kom, sal hulle verbrand,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “daar sal nie wortel of tak van hulle oorbly nie. Maar vir julle wat ontsag het vir my Naam, sal die son van geregtigheid deurbreek met genesing in sy strale. Dan sal julle uitgaan en bokspring soos kalwers wat op stal was, en julle sal die goddeloses vertrap. Ja, hulle sal as onder die sole van julle voete wees, op die dag wat Ek voorberei,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Onthou die Wet van Moses, my dienskneg, wat Ek hom by Horeb beveel het en wat vir die hele Israel geld – die vaste voorskrifte en bepalings. Kyk, Ek gaan Elia, die profeet, vir julle stuur voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. Hy sal ouers met kinders versoen en kinders met ouers, sodat Ek nie hoef te kom en die land met 'n banvloek tref nie.” Die geslagsregister van Jesus Christus, die •Seun van Dawid, die Seun van Abraham: Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek, Juda het Peres en Serag by Tamar verwek, Peres het Gesron verwek, Gesron het Ram verwek, Ram het Amminadab verwek, Amminadab het Nagson verwek, Nagson het Salmon verwek, Salmon het Boas by Ragab verwek, Boas het Obed by Rut verwek, Obed het Isai verwek en Isai het Dawid, die koning, verwek. Dawid het Salomo by die vrou van Urija verwek, Salomo het Rehabeam verwek, Rehabeam het Abia verwek, Abia het Asa verwek, Asa het Josafat verwek, Josafat het Joram verwek, Joram het Ussia verwek, Ussia het Jotam verwek, Jotam het Agas verwek, Agas het Hiskia verwek, Hiskia het Manasse verwek, Manasse het Amon verwek, Amon het Josia verwek en in die tyd van die wegvoering na Babilon het Josia Jojagin en sy broers verwek. Ná die wegvoering na Babilon het Jojagin Sealtiël verwek, Sealtiël het Serubbabel verwek, Serubbabel het Abihud verwek, Abihud het Eljakim verwek, Eljakim het Asor verwek, Asor het Sadok verwek, Sadok het Agim verwek, Agim het Elihud verwek, Elihud het Eleasar verwek, Eleasar het Mattan verwek, Mattan het Jakob verwek en Jakob het Josef verwek, die man van Maria, uit wie Jesus, wat bekend staan as Christus, gebore is. Al die geslagte dan van Abraham tot by Dawid was veertien geslagte, en van Dawid tot by die wegvoering na Babilon veertien geslagte, en van die wegvoering na Babilon tot by die Christus veertien geslagte. Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees. Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei. Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. ” Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem. Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan 'n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem. Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar 'n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ” Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan. Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is: “'n Stem is in Rama gehoor, 'n droewige gehuil en 'n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.” Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom. Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in 'n droom 'n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek en in 'n dorp met die naam Nasaret gaan woon, sodat vervul sou word wat deur die profete gesê is: “Hy sal 'n Nasarener genoem word.” In daardie tyd het Johannes die Doper in die openbaar begin optree en in die woestyn van Judea verkondig: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Hy was immers die een van wie die profeet Jesaja gepraat het toe hy gesê het: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” Hierdie Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning. In dié tyd het daar inwoners van Jerusalem, die hele Judea en die hele Jordaanomgewing na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Maar toe hy sien dat baie van die •Fariseërs en •Sadduseërs kom na waar hy gedoop het, het hy vir hulle gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. En moenie eers oorweeg om by julleself te sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Sy hooivurk is in sy hand. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak en sy koring in die skuur versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” Toe het Jesus van Galilea af by die Jordaan aangekom. Hy het na Johannes gegaan om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom probeer teengaan met die woorde: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” Jesus het hom geantwoord: “Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier alle •geregtigheid vervul.” Johannes het toe ingestem. Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het 'n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die Duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte lank het Hy gevas, en later honger geword. Toe het die versoeker nader gekom en vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word.” Maar Hy antwoord: “Daar staan geskryf, “ ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’ ” Toe neem die Duiwel Jesus na die heilige stad en laat Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue staan en sê vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee – op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ” Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskryf, “ ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” Hierna neem die Duiwel Hom na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in hulle prag, en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir u gee as u neerkniel en my aanbid. ” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf, “ ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” Toe het die Duiwel Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg. Toe Jesus hoor dat Johannes in hegtenis geneem is, het Hy na Galilea teruggekeer. Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Land van Sebulon en land van Naftali, die pad langs die see, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene: Die volk wat in duisternis woon het 'n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en die skadu van die dood leef, het 'n lig opgegaan.” Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat •Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om 'n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg. En Jesus het in die hele Galilea rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. Die nuus oor Hom het deur die hele Sirië versprei. Hulle het almal wat ongesteld was, dié wat deur allerlei siektes en pyne geteister is, na Hom gebring, ook almal wat deur demone besete en maansiek was, en verlamdes – en Hy het hulle genees. Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af. Toe Jesus die skare sien, het Hy teen die berg opgegaan. Hy het gaan sit, en sy dissipels het na Hom gekom. Hy het begin praat en hulle geleer en gesê: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die •koninkryk van die hemele. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.” “Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. •Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is. “Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die •koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle, as julle •geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die •Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie. “Julle het gehoor dat aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. •Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland. “Daar is gesê, ‘Wie van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. “Verder het julle gehoor dat vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie 'n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand’. Maar Ek sê vir julle dat julle nie 'n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom. En as iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed wil vat, gee hom ook die bokleed. En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam. Gee aan wie van jou iets vra, en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die •hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, verdien julle dan enige beloning? Maak die •tollenaars nie ook maar so nie? En as julle slegs julle broers groet, wat doen julle meer? Maak die heidene nie ook maar so nie? “Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” “Wees op julle hoede dat julle nie julle •geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie, anders is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die •hemele nie. “Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die •sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen. “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.” “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. “Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? “Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.” “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ maar wat van die balk in jou eie oog? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal. “Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie.” “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. “Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom 'n klip gee? Of ook, as hy 'n vis vra, vir hom 'n slang gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die •hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra! “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.” “Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind. “Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur. Aan hulle vrugte sal julle hulle uitken. Pluk 'n mens miskien druiwe van doringstruike of vye van dissels? Net so dra elke goeie boom goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Aan hulle vrugte sal julle hulle dus uitken. “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ” “Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit nie ineengestort nie, omdat dit stewig op rots gevestig was. Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos 'n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.” Toe Jesus sy redevoering voltooi het, was die skare verstom oor sy lering, omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie. Nadat Jesus van die berg afgekom het, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig. Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ” Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus •Petrus se huis binnegaan, het Hy Petrus se skoonmoeder siek van die koors sien lê. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.” Toe Jesus die skare rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant vertrek. 'n Sekere skrifkenner het toe nader gekom en vir Hom gesê: “Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan.” Maar Jesus antwoord hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie. ” Iemand anders, een van sy dissipels, het vir Hom gesê: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. ” Maar Jesus sê vir hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar 'n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Toe Hy aan die oorkant kom, in die gebied van die Gadareners, het twee manne, deur demone besete, uit die rotsgrafte gekom en Hom tegemoet gegaan. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand met daardie pad langs verby kon reis nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Los ons uit, •Seun van God! Het U voortydig hierheen gekom om ons te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke gewei. Die demone het Hom gesmeek: “As U ons uitdryf, stuur ons in die trop varke in!” En Hy het vir hulle gesê: “Gaan!” Hulle het toe uitgevaar en weggegaan in die varke in. En kyk, die hele trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip. Die wagters het op die vlug geslaan, en in die dorp alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. En kyk, die hele dorp het uitgegaan om Jesus te ontmoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek om uit hulle gebied weg te gaan. Jesus het in die boot geklim, na die oorkant gevaar en in sy tuisdorp aangekom. En kyk, hulle het 'n verlamde man wat op 'n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. ” Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: “Hierdie man laster.” En omdat Jesus geweet het wat hulle dink, het Hy gesê: “Hoekom bedink julle bose dinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” En hy het opgestaan en na sy huis gegaan. Toe die skare dit sien, is hulle met diep ontsag vervul, en hulle het God, wat sulke gesag aan mense gee, geprys. Toe Jesus van daar af verder gaan, sien Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Toe Hy in die huis vir ete aanleun, het daar onverwags ook baie •tollenaars en sondaars opgedaag en saam met Jesus en sy dissipels vir ete aangeleun. Die •Fariseërs het dit gesien en vir sy dissipels gevra: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Gaan leer wat beteken, ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Ek het immers nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Toe het Johannes se dissipels na Jesus gekom en gesê: “Waarom vas ons en die •Fariseërs gereeld, maar u dissipels vas nie? ” Jesus het hulle geantwoord: “Die bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas. “Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; want die lap trek los van die kledingstuk, en 'n groter skeur ontstaan. “'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue.” Hy was nog besig om dié dinge aan hulle te sê, en kyk, daar kom 'n sekere leier aan, kniel voor Hom en sê: “My dogter het pas gesterf, maar kom lê u hand op haar, en sy sal leef.” Jesus het opgestaan en hom gevolg, en sy dissipels ook. Daar het toe skielik 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak. Want, het sy vir haarself gesê: “As ek tog net sy bokleed kan aanraak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered. ” En van daardie oomblik af was die vrou gesond. Toe Jesus by die huis van die leier kom en die fluitspelers sien en die klomp mense wat luidrugtig huil, het Hy gesê: “Gaan weg, want die dogtertjie het nie gesterf nie, maar slaap net. ” Hulle het Hom egter uitgelag. Toe die klomp mense uitgejaag is, het Hy ingegaan en haar aan die hand geneem en die dogtertjie het opgestaan. Die nuus hieroor het deur die hele omgewing versprei. Toe Jesus van daar af verder gaan, het twee blindes agter Hom begin aanloop en uitgeroep: “Ontferm U oor ons, •Seun van Dawid!” Nadat Jesus die huis binnegegaan het, het die blindes na Hom gekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hulle antwoord Hom: “Ja, Here.” Toe het Jesus hulle oë aangeraak en gesê: “Laat met julle gebeur soos julle glo.” En hulle oë is geopen. Jesus het hulle ernstig aangespreek en gesê: “Sorg dat niemand hiervan weet nie.” Maar hulle het uitgegaan en die nuus oor Hom in daardie hele omgewing versprei. Hulle het toe vertrek, en kyk, 'n man wat stom was, en deur 'n demoon besete, is na Hom gebring. Nadat die demoon uitgedryf is, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd en het gesê: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie.” Maar die •Fariseërs het gesê: “Deur die aanvoerder van die demone dryf Hy die demone uit.” Jesus het in al die stede en dorpies rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die •koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal genees. Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder. Toe sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid daarom die Here van die oes dat Hy arbeiders uitstuur om sy oes in te samel.” Jesus het toe sy twaalf dissipels nader geroep en aan hulle gesag oor •onrein geeste gegee om hulle te kan uitdryf en om elke siekte en elke kwaal gesond te kan maak. Die twaalf •apostels se name was: eerstens Simon, wat bekend staan as •Petrus, en sy broer Andreas; Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus die •tollenaar; Jakobus, seun van Alfeus, en Taddeus; Simon Kananeus en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur, nadat Hy hulle die volgende opdragte gegee het: “Moet julle nie begewe op 'n pad na die heidene, en moenie in 'n Samaritaanse dorp ingaan nie, maar gaan eerder na die verlore skape van die huis van Israel. Gaan verkondig die volgende, ‘Die •koninkryk van die hemele is op hande.’ Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. Julle het dit verniet gekry – verniet moet julle dit uitdeel. “Moenie goue of silwer- of kopermunte in julle gordels saamneem nie, nie 'n reissak vir die pad nie, ook nie twee kledingstukke, of sandale, of 'n wandelstok nie; want die arbeider is sy kos werd. “Watter stad of dorp julle ook al binnegaan – vind uit wie daarin waardig is, en bly daar totdat julle vertrek. En wanneer julle die huis binnegaan, groet die huismense. En as hulle dit waardig is, skenk julle vrede aan hulle; maar as hulle dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En wie ook al julle nie verwelkom en na julle woorde nie luister nie – gaan weg uit daardie huis of stad en skud die stof van julle voete af. •Amen, Ek sê vir julle: Dit sal vir die land Sodom en Gomorra op die oordeelsdag draagliker wees as vir daardie stad.” “Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle •sinagoges sal hulle julle gesel. Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en 'n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na 'n ander. •Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die •Seun van die Mens kom nie. “'n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of 'n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” “Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. “Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om 'n wig in te dryf, “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, en tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; en 'n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’ “Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. “Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet kry, en wie 'n •regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die beloning van 'n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.” Toe Jesus sy opdragte aan sy twaalf dissipels voltooi het, het Hy daarvandaan vertrek om in hulle dorpe te leer en te preek. Toe Johannes in die tronk verneem wat Christus alles doen, het hy sy dissipels gestuur om Hom te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: “Blindes sien weer en verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is die mens wat nie aan My aanstoot neem nie. ” Met hulle vertrek het Jesus begin om met die skare oor Johannes te praat: “Maar wat wou julle gaan sien toe julle na die woestyn uitgegaan het? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Kyk, mense met deftige klere woon in konings se paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “•Amen, Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie; en tog is die geringste in die •koninkryk van die hemele groter as hy. Maar sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe ly die koninkryk van die hemele onder geweld en probeer geweldenaars dit in besit neem. Want al die Profete en die Wet, tot en met Johannes, het daaroor geprofeteer. En as julle dit wil aanvaar – hy is Elia wat sou kom. Laat dié wat ore het, luister! “Maar met wie kan Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is soos kindertjies wat op die markpleine sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie weeklaag nie!’ “Want Johannes het gekom, en hy eet en drink nie, “en hulle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “Die •Seun van die Mens het gekom, en Hy eet en drink, “en hulle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van •tollenaars en sondaars.’ “Maar die wysheid word deur haar dade reg bewys.” Toe het Jesus begin om die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie. “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “ ‘Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal!’ “Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir die gebied van Sodom op die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.” In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword, en begin om die are te pluk en te eet. Toe die •Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie. ” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan, en hulle die •vertoonbrode geëet het – waarvan nie hy of dié saam met hom mag geëet het nie, maar net die priesters? Of het julle nie in die Wet gelees dat die priesters die Sabbat ontheilig wanneer hulle op die Sabbat in die •tempel diens doen, maar tog onskuldig bly nie? Ek sê vir julle: Wat hiér is, is groter as die tempel. As julle maar net begryp het wat bedoel word met ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Die •Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat.” Toe het Jesus daarvandaan vertrek en hulle •sinagoge binnegegaan. En kyk, daar was 'n man met 'n verdorde hand. Om Hom te kon aankla, vra hulle Hom toe: “Is dit toelaatbaar om iemand op die Sabbat gesond te maak?” Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ” Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een. Die •Fariseërs het toe uitgegaan en planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring. Toe Jesus dit agterkom, het Hy daarvandaan weggegaan. Groot skares het Hom gevolg. Hy het hulle almal gesond gemaak en gewaarsku om Hom nie bekend te laat word nie. So sou vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Kyk, my Dienskneg wat Ek gekies het, my Geliefde oor wie Ek My verbly! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal die reg aan die nasies verkondig. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie; sy stem sal 'n mens nie in die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en 'n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie, totdat Hy die reg laat seëvier. En op sy Naam sal die nasies hulle hoop vestig.” Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis beroof. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die •Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.” “ Óf julle beskou die boom as goed en sy vrugte as goed, óf julle beskou die boom as sleg en sy vrugte as sleg. Aan sy vrugte word die boom immers geken. Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.” Toe het sommige van die skrifkenners en •Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag 'n teken van u sien.” Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor; en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. ” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, maar kry dit nie. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.” Terwyl Jesus nog met die skare praat, het sy moeder en broers onverwags buite gestaan en wou met Hom praat. Iemand het vir Hom gesê: “Kyk, u moeder en broers staan buite en wil met U praat.” Maar Hy het die een wat dit vir Hom gesê het, geantwoord: “Wie is my moeder en wie is my broers?” Toe het Hy sy hand na sy dissipels uitgesteek met die woorde: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die •hemele, dié is my broer en suster en moeder.” Daardie selfde dag het Jesus, nadat Hy van die huis vertrek het, langs die see gaan sit. 'n Groot skare het om Hom saamgedrom, sodat Hy in die boot geklim het om daar te gaan sit. Die hele skare het op die strand bly staan. Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En nog ander het op goeie grond geval, en dit het opbrengs gelewer – party honderd-, ander sestig- en ander dertigvoudig. Laat dié wat ore het, luister!” Die dissipels het toe nader gekom en vir Hom gevra: “Hoekom praat U deur gelykenisse met hulle?” Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die •koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Wat hulle betref, word die profesie van Jesaja vervul: “ ‘Met die ore sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’ “Maar gelukkig is julle oë, want hulle sien, en julle ore, want hulle hoor. •Amen, Ek sê vir julle, baie profete en •regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en hulle het nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie. “Maar wat julle betref, luister nou na die gelykenis van die saaier.” “Wanneer iemand die woord van die •koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net 'n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik. En die saad wat tussen die dorings gesaai is – dit is hy wat hierdie woord hoor, maar die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig.” Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ” Hy het nog 'n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is. ” Dit alles het Jesus deur gelykenisse aan die skare vertel, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Ek sal deur gelykenisse spreek; Ek sal uitbasuin wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was.” Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ” “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in die veld begrawe lê. 'n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n treknet wat in die see uitgewerp is en van elke soort vis gevang het. Toe dit vol was, het hulle dit op die strand getrek. Hulle het toe gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar die slegtes uitgegooi. So sal dit wees by die voleinding van die tyd: Die engele sal uitgaan, en hulle sal die bose mense tussen die •regverdiges uithaal en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. ” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat 'n leerling in die •koninkryk van die hemele geword het, soos 'n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan. Toe Jesus in sy tuisdorp aankom, het Hy hulle in hulle •sinagoge geleer, sodat hulle verstom was en gesê het: “Waar kom hy aan hierdie wysheid en kragtige dade? Is hy dan nie die seun van die skrynwerker nie? Staan sy moeder nie bekend as Maria en sy broers as Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En woon sy susters dan nie almal hier onder ons nie? Waar kom hy dan aan al hierdie dinge?” En hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het egter vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp en in sy huis.” Vanweë hulle ongeloof het Hy nie baie kragtige dade daar gedoen nie. In daardie tyd het Herodes, die tetrarg, die berigte omtrent Jesus gehoor. Hy het vir sy dienaars gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood, en daarom werk hierdie kragte in hom.” Herodes het Johannes immers gevange laat neem, hom laat boei en in die tronk laat sit, en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou hê nie.” Hoewel Herodes hom wou doodmaak, was hy vir die skare bang, omdat hulle Johannes as 'n profeet beskou het. Tydens Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor almal gedans, en sy het Herodes bekoor. Daarom het hy met 'n eed beloof om wat sy ook al vra, aan haar te gee. Aangehits deur haar moeder, het sy gesê: “Bring vir my hier, op 'n skinkbord, die kop van Johannes die Doper.” En hoewel die koning hieroor ontsteld was, het hy, vanweë sy eed en hulle wat aangeleun het vir ete, beveel dat dit vir haar gebring moes word. Hy het toe iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Sy kop is in 'n skottel gebring en vir die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder geneem. Sy dissipels het gekom, die liggaam geneem en hom begrawe; daarna het hulle dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op sy eie te wees. Maar die skare het dit te hore gekom en Hom te voet uit die dorpe gevolg. Toe Hy uitklim, het Hy die groot skare gesien, hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en solank voor Hom uit na die oorkant te vaar, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy teen die berg opgegaan om in afsondering te bid. Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. Die boot was reeds 'n hele aantal stadion weg van die land af, en is deur die golwe heen en weer geslinger, want die wind was teen hulle. In die vierde nagwaak het Hy na hulle toe aangeloop gekom op die see. Toe die dissipels Hom op die see sien loop, het hulle vreesbevange geraak en gesê, “Dit is 'n spook!” en van angs begin skreeu. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” •Petrus het Hom geantwoord: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.” Hy het gesê: “Kom!” Petrus het van die boot afgeklim en op die water geloop, en na Jesus begin gaan. Maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Toe hulle in die boot klim, het die wind gaan lê. Dié in die boot het voor Hom neergeval en gesê: “Waarlik, U is die •Seun van God!” Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle aan wal gegaan by Gennesaret. Toe die manne van daardie plek Hom herken, het hulle daardie hele omgewing laat weet, en hulle het almal wat siek was, na Hom gebring en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat dit aangeraak het, is genees. Toe kom daar •Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem by Jesus aan en sê: “Hoekom oortree u dissipels die tradisie van die voorouers? Want hulle was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie. ” Hy het hulle egter geantwoord: “Hoekom oortree ook julle die gebod van God met julle tradisie? God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ Maar julle sê, ‘Wie vir sy vader of moeder sê, Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, is 'n offergawe, hoef sy vader hoegenaamd nie te eer nie.’ So het julle deur julle tradisie die woord van God kragteloos gemaak. Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer, “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ ” Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: Dit is nie wat by die mond ingaan wat 'n mens •onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak 'n mens onrein. ” Toe die dissipels nader kom, sê hulle vir Hom: “Weet U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle dié uitspraak hoor?” Hy het egter geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal met wortel en al uitgetrek word. Los hulle – hulle is blinde leiers van blindes; en as 'n blinde 'n blinde lei, sal albei in die sloot val. ” •Petrus het Hom gevra: “Verduidelik hierdie gelykenis vir ons.” Hy het gesê: “Is ook julle nog steeds sonder begrip? Verstaan julle nie dat alles wat by die mond ingaan, in die maag beland en in die privaat uitgewerp word nie? Maar wat by die mond uitgaan, kom uit die hart, en daardie dinge maak die mens onrein. Uit die hart kom daar immers bose gedagtes, moord, owerspel, onsedelikheid, diefstal, valse getuienis en lastering. Dit is die dinge wat 'n mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.” Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees. Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 'n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik. Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.” En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die boot geklim en na die gebied van Magadan gegaan. Die •Fariseërs en •Sadduseërs het toe nader gekom om Hom te toets, en Hom gevra om vir hulle 'n teken uit die hemel te wys. Daarop het Hy hulle geantwoord: “In die laat namiddag sê julle, ‘Dit sal mooi weer wees, want die hemel is rooi.’ En vroegoggend, ‘Vandag is dit stormweer, want die hemel is rooi en dit raak betrokke.’ Julle weet dus hoe om die voorkoms van die hemel te beoordeel, maar nie die tekens van die tye nie? 'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. ” En Hy het hulle agtergelaat en weggegaan. Toe die dissipels na die oorkant vaar, het hulle vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Pasop, en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en •Sadduseërs.” Hulle het toe onder mekaar bespiegel en gesê: “Ons het nie brood saamgebring nie.” Jesus het dit agtergekom en gesê: “Kleingelowiges, waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie die vyf brode vir die vyfduisend en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Of die sewe brode vir die vierduisend, en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan julle dan nie begryp dat Ek nie oor brood met julle gepraat het nie? Nee, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” Toe het hulle ingesien dat Hy nie bedoel het hulle moet vir die suurdeeg van brood op hulle hoede wees nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die •Seun van die Mens?” Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. En Ek sê vir jou, jy is •Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Ek sal vir jou die sleutels van die •koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op aarde toesluit, sal in die hemele toegesluit wees, en wat jy ook al op aarde vrylaat, sal in die hemele vrygelaat wees. ” Daarop het Hy die dissipels beveel om vir niemand te vertel dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. •Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want die •Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het. •Amen, Ek sê vir julle, sommige van dié wat hier staan, sal die dood beslis nie smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien kom het nie. ” Ses dae later het Jesus vir •Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle teen 'n hoë berg uitgelei, waar hulle alleen was. Voor hulle het Hy van gedaante verander: Sy gesig het gestraal soos die son, en sy klere het skitterend wit geword soos die lig. En kyk, Moses en Elia het aan hulle verskyn en was met Hom in gesprek. Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, laat my toe om hier drie hutte te bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Terwyl hy nog praat, het 'n helder wolk skielik 'n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, 'n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Toe die dissipels dit hoor, het hulle op hulle gesigte neergeval, oorval deur vrees. Jesus het nader gekom, en nadat Hy hulle aangeraak het, sê Hy: “Staan op en moenie langer bang wees nie.” Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, behalwe net Jesus self. Terwyl hulle teen die berg afgaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.” Die dissipels het Hom gevra: “Waarom sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom?” Hy het geantwoord: “Elia kom inderdaad, en hy sal alles herstel. Maar Ek sê vir julle, Elia het reeds gekom, en hulle het hom nie herken nie, maar met hom gemaak soos hulle wou. So moet ook die Seun van die Mens deur hulle toedoen ly.” Toe het die dissipels begryp dat Hy met hulle oor Johannes die Doper gepraat het. Toe hulle by die skare kom, het 'n man na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly erg. Dikwels val hy in die vuur, en dikwels in die water. Ek het hom na u dissipels gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.” Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Daarop het Jesus die demoon bestraf, en hy het uit hom uitgegaan. Van daardie oomblik af was die seun gesond. Jesus se dissipels het toe eenkant na Hom gekom en gevra: “Waarom kon ons dan die demoon nie uitdryf nie?” Hy het hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. •Amen, Ek sê vir julle: As julle geloof het soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie. ” Toe hulle in Galilea bymekaarkom, sê Jesus vir hulle: “Die •Seun van die Mens gaan oorgelewer word in die hande van mense. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” En hulle het baie bedroef geword. Toe hulle in Kapernaum aankom, het diegene wat die dubbeldragme invorder, na •Petrus gekom en gevra: “Betaal julle leermeester nie die dubbeldragme nie?” Hy antwoord: “Ja, wel.” Toe Petrus in die huis kom, spring Jesus hom voor, en vra: “Wat dink jy, Simon? Van wie vorder die aardse konings hulle tolgeld of belasting in? Van hulle seuns of van •vreemdelinge?” Toe hy antwoord, “van vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar sodat ons hulle nie aanstoot gee nie, gaan see toe en gooi die hoek in. Vat die eerste vis wat jy uittrek, en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater vind. Neem dit en betaal dit aan hulle namens My en jou.” In daardie tyd het die dissipels na Jesus gekom en gesê: “Wie is nou eintlik die belangrikste in die •koninkryk van die hemele?” Hy het toe 'n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan en gesê: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n maalklip van 'n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom. As jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om twee oë te hê en in Gehenna met sy vuur gegooi te word.” “Pasop dat julle nie neersien op een van hierdie kleintjies nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele voortdurend die aangesig van my Vader in die hemele aanskou. Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege-en-negentig in die berge los, en die een wat weggeraak het, gaan soek nie? En as hy hom wel kry, •amen, Ek sê vir julle, dan is hy baie blyer oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie weggeraak het nie. So is dit nie die wil van julle Vader in die hemele dat een van hierdie kleintjies verlore raak nie.” “ As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die •gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die •tollenaar. “•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees. Verder, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde. ” Toe het •Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer. “Daarom is die •koninkryk van die hemele soos 'n koning wat rekenskap van sy slawe wou eis. Toe hy hulle skuld begin nagaan, is een wat tienduisend talent verskuldig was, na hom gebring. Omdat hy nie kon terugbetaal nie, het die heer beveel dat hy, asook sy vrou en kinders en alles wat hy besit, verkoop word en dat die skuld so terugbetaal moes word. Die slaaf het toe voor hom op die grond neergeval, laag voor hom gebuig en gesê, ‘Wees geduldig met my, en ek sal u alles terugbetaal.’ Die heer van daardie slaaf het hom innig jammer gekry, hom vrygelaat en sy skuld vir hom kwytgeskeld. Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, ‘Betaal terug wat jy skuld!’ Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, ‘Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.’ Maar hy wou nie – inteendeel, hy het weggegaan en hom in die tronk laat gooi, totdat hy die verskuldigde bedrag sou terugbetaal. “Toe sy medeslawe sien wat gebeur het, was hulle baie ontsteld en het vir hulle heer alles gaan vertel wat gebeur het. Daarop ontbied sy heer hom en sê vir hom, ‘Jou slegte slaaf! Al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook jou medeslaaf begenadig soos ek jou begenadig het nie?’ En sy heer het kwaad geword en hom aan die folteraars oorgegee totdat hy al die skuld sou terugbetaal. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Toe Jesus sy redevoering voltooi het, het Hy van Galilea af vertrek en na die gebied van Judea oorkant die Jordaan gegaan. 'n Groot skare het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak. Die •Fariseërs het na Hom gekom, en om Hom te toets, gevra: “Is dit toelaatbaar dat 'n man om enige rede van sy vrou skei?” Hy antwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af manlik en vroulik gemaak het nie? ” Verder sê Hy: “ ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Toe vra hulle Hom: “Waarom het Moses dan bepaal dat 'n man sy vrou 'n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei?” Hy antwoord hulle: “Moses het julle weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin af was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie. ” Hy het egter vir hulle gesê: “Nie almal kan hierdie saak begryp nie – slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad eunugs wat so gebore is, daar is eunugs wat deur mense so gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die •koninkryk van die hemele. Laat enigeen wat kan, dit begryp.” Toe is kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid. Maar die dissipels het hulle berispe. Jesus het egter gesê: “Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die •koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” Hy het hulle toe die hande opgelê en daarvandaan vertrek. En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom. ” Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” Die jong man sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom – wat kom ek dan nog kort?” Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die jong man egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: 'n Ryke sal moeilik in die •koninkryk van die hemele ingaan. Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die •koninkryk van God in te gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle heeltemal uit die veld geslaan en het gesê: “Wie kan dan gered word?” Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik. ” Toe vra •Petrus Hom: “Kyk, ons het alles agtergelaat en U gevolg. Wat sal ons dan daarvoor kry?” Jesus het vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die •Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang, en die ewige lewe erf. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’ Teen die aand sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman, ‘Roep die arbeiders en betaal hulle die loon; begin by die laastes, tot by die eerstes.’ Dié wat teen die elfde uur gehuur is, het gekom en elk 'n denarius gekry. Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk 'n denarius gekry. Hulle het dit geneem, maar by die grondeienaar gaan mor, ‘Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle dieselfde behandel as ons, ons wat die dag se werklas en die hitte moes verduur.’ Maar hy het een van hulle geantwoord, ‘Vriend, ek doen jou nie 'n onreg aan nie. Het jy nie met my op 'n denarius ooreengekom nie? Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? ’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.” Jesus het opgegaan na Jerusalem. Onderweg het Hy die twaalf dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “ Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en skrifkenners. Hulle sal Hom ter dood veroordeel, en Hom aan die heidene oorlewer om Hom te bespot, te gesel en te kruisig; maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit. ” Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink? ” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, •Seun van Dawid!” Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg. Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik 'n vasgemaakte donkie vind met 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op 'n donkie, en op 'n jong donkie, die vul van 'n pakdier. ” Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit. Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna vir die •Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!” Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.” Jesus het die tempelterrein binnegegaan en almal wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, uitgejaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, ‘My huis sal 'n huis van gebed genoem word’. Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak!” Blindes en verlamdes het daar op die tempelterrein na Hom gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Toe die leierpriesters en skrifkenners die wonderbaarlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat op die tempelterrein uitroep, “Hosanna vir die •Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig en het vir Hom gesê: “Hoor jy wat sê hierdie kinders?” Maar Jesus antwoord hulle: “Ja, het julle nog nooit gelees nie, ‘Uit die mond van kleuters en suigelinge het U lof vir U laat opklink’?” Hy het hulle verlaat, uit die stad uit na Betanië gegaan, en daar oornag. Vroegoggend, op pad terug na die stad, het Hy honger geword. Toe Hy 'n enkele vyeboom langs die pad sien, het Hy daarheen geloop, maar niks daaraan gevind nie, net blare. Toe sê Hy vir die vyeboom: “Mag jy tot in ewigheid nooit weer vrug dra nie!” Die vyeboom het onmiddellik verdroog. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en vra: “Hoe het die vyeboom so skielik verdroog?” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” Hy het na die tempelterrein gegaan, en terwyl Hy besig was om onderrig te gee, het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk na Hom gekom en gevra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” Jesus het hulle geantwoord: “Ook Ek sal julle net een vraag vra, en as julle My kan antwoord, sal Ek op my beurt vir julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen: Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom? Van die hemel of van mense? ” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy vir ons sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê, ‘van mense...’ – ons is bang vir die skare, want almal beskou Johannes as 'n profeet. ” Hulle het Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” “Wat dink julle? 'n Man het twee kinders gehad. Hy gaan toe na die eerste een en sê, ‘My kind, gaan werk vandag in die wingerd. ’ Maar hy antwoord, ‘Nee, ek wil nie.’ Later het hy egter spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander kind gegaan en dieselfde gesê. Hy het geantwoord, ‘Ek sal, heer,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle sê: “Die eerste een.” Jesus sê vir hulle: “•Amen, Ek sê vir julle, die •tollenaars en prostitute sal voor julle in die •koninkryk van God ingaan. Want Johannes het na julle gekom met die pad van •geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie. ” “Luister na 'n ander gelykenis. Daar was 'n grondeienaar wat 'n wingerd aangeplant het. Hy het dit omhein, 'n parskuip daarin gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Toe die oestyd aanbreek, het hy sy slawe na die landbouers gestuur om sy opbrengs te ontvang. Maar die landbouers het sy slawe gegryp, een afgeransel, 'n ander een doodgemaak, en nog een gestenig. Hy het weer ander slawe gestuur, nog meer as die eerstes, en hulle het dieselfde met hulle gedoen. Uiteindelik het hy sy seun na hulle gestuur, met die gedagte, ‘Hulle sal my seun met respek behandel.’ Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, en kry sy erfdeel in die hande.’ Hulle het hom toe gegryp, uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd kom, wat sal hy met daardie landbouers maak?” Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n aaklige dood laat sterf, en die wingerd aan ander landbouers verhuur wat aan hom die opbrengs op die regte tyd sal lewer.” Jesus sê vir hulle: “Het julle nog nooit in die Skrifte gelees nie: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ “Daarom sê Ek vir julle: Die •koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer. Wie op hierdie klip val, sal verpletter word; en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.” Toe die leierpriesters en die •Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat. Hulle wou Hom gevange neem, maar was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het. Jesus het weer met hulle deur gelykenisse gepraat en gesê: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n •bruilofsfees vir sy seun voorberei het. Hy het toe sy slawe gestuur om dié wat na die bruilofsfees genooi is, te roep, maar hulle wou nie kom nie. Nog 'n keer het hy ander slawe gestuur, met die opdrag, ‘Sê vir die genooides: Kyk, ek het my feesmaal gereedgemaak. My beeste en die vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed – kom na die bruilofsfees!’ Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en weggegaan, die een na sy stuk grond, die ander na sy besigheid. Die res van hulle het sy slawe gegryp, hulle sleg behandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword; hy het sy soldate gestuur, daardie moordenaars om die lewe gebring en hulle stad afgebrand. Toe sê hy vir sy slawe, ‘Die bruilofsfees is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. Gaan dan uit na die kruispaaie en nooi soveel mense na die bruilofsfees as wat julle kan vind.’ Toe het daardie slawe uitgegaan na die paaie en almal bymekaargemaak wat hulle teëgekom het, slegtes sowel as goeies. En die bruilofsaal het vol gaste geword. Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar 'n man sonder 'n bruilofskleed aan. En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” Toe het die •Fariseërs gegaan en 'n plan beraam om Hom in 'n strik te laat beland oor wat Hy sê. Hulle stuur toe hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou leer en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie. Sê dan vir ons wat is u opinie: Is dit toelaatbaar om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Omdat Jesus egter hulle bose bedoeling geken het, het Hy gesê: “Waarom toets julle My, julle skynheiliges? Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir Hom 'n denarius gebring. Hy vra hulle toe: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” En hulle sê vir Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Hy vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas. Hulle het Hom daar agtergelaat en weggegaan. Daardie selfde dag kom die •Sadduseërs, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, na Hom en vra: “Meester, Moses het gesê, ‘As iemand sonder kinders sterf, moet sy broer met die vrou trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ By ons was daar sewe broers. Die eerste het getrou en gesterf, en sy vrou vir sy broer agtergelaat, omdat hy nie self 'n nageslag gehad het nie. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer tot by die sewende een. Laaste van almal het die vrou gesterf. By die opstanding, wie van die sewe se vrou sal sy dan wees? Almal het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie. By die opstanding tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy lering. Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ” Toe die •Fariseërs bymekaar was, het Jesus hulle gevra: “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s'n.” Hy vra hulle toe: “Hoe kan Dawid Hom dan, deur die werking van die Gees, ‘Here’ noem, as hy sê, “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het’? “As Dawid Hom dan ‘Here’ noem, hoe kan Hy sy Seun wees?” Niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; en van daardie dag af het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie. Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: “Die skrifkenners en •Fariseërs sit op die stoel van Moses. Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met 'n vinger aan die vrag te raak nie. Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die •sinagoges, om op die markpleine begroet en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus. Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.” “Wee julle, skrifkenners en •Fariseërs, skynheiliges! Want julle sluit die mense uit die •koninkryk van die hemele uit. Self gaan julle nie in nie, en boonop laat julle die mense wat probeer ingaan, nie toe om in te gaan nie. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle deurkruis land en see om 'n enkele proseliet te werf, en wanneer dit gebeur, maak julle hom 'n kind van Gehenna, dubbel so erg as julleself. “Wee julle, blinde leiers! Julle sê, ‘Wie by die heiligdom van die •tempel sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die goud van die heiligdom, is gebonde.’ Dwase en blindes! Wat is belangriker, die goud of die heiligdom wat die goud heilig? Verder sê julle, ‘Wie by die altaar sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die offergawe daarop, is gebonde.’ Blindes! Wat is belangriker, die offergawe of die altaar wat die offergawe heilig? Wie dan sweer by die altaar, sweer daarby en by alles daarop. Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. En wie by die hemel sweer, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. •Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.” “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.’ ” Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.” “Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan om besittings uit sy huis te gaan haal nie; en wie op die landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat julle nie in die winter en op die Sabbat sal moet vlug nie; want dan sal daar groot verdrukking wees, soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nog nie was nie, en beslis ook nie weer sal wees nie. As daardie dae nie ingekort word nie, sou geen mens gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae ingekort word.” “ As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Hier is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vooruit vir julle gesê. As hulle dan vir julle sê, ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moenie daarheen gaan nie, of ‘Kyk, Hy is in die binneste kamers!’ moet dit nie glo nie. Want net soos die weerlig uitslaan in die ooste en skyn tot in die weste, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls versamel. “Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. ’ “Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander. ” “Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. “Dan sal daar twee op die land wees – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee sal by die meule maal – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. “ Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” “Dan sal die •koninkryk van die hemele wees soos tien jongmeisies wat hulle lampe geneem het om die bruidegom tegemoet te gaan. Vyf van hulle was dwaas en vyf was verstandig. Die dwases het hulle lampe gevat, maar nie olyfolie met hulle saamgeneem nie; die verstandiges het egter, saam met hulle lampe, ook olyfolie in houers geneem. En omdat die bruidegom getalm het, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. In die middel van die nag was daar 'n geroep, ‘Kyk, hier is die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe het al daardie jongmeisies opgestaan en hulle lampe gereedgemaak. Die dwases het vir die verstandiges gesê, ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het egter geantwoord, ‘Dalk sal daar nie genoeg wees vir ons én vir julle nie. Gaan eerder na die verkopers en koop julle eie.’ Terwyl hulle die olie gaan koop het, het die bruidegom opgedaag, en dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die •bruilofsfees, en die deur is gesluit. Later kom die ander jongmeisies toe ook daar aan en roep, ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar hy antwoord, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.’ Wees dan waaksaam, omdat julle die dag en die uur nie ken nie.” “Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man met die twee talent het gekom en gesê, ‘Meneer, twee talent het u vir my gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog twee talent gemaak.’ Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man wat die een talent ontvang het, het ook gekom en gesê, ‘Meneer, ek ken u – u is 'n hardvogtige man wat maai waar u nie gesaai het nie en wat oes waar u nie saad uitgestrooi het nie. Omdat ek bang was, het ek u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is wat aan u behoort.’ Maar sy eienaar antwoord hom, ‘Jou slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie en oes waar ek nie saad uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die duisternis daarbuite. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ’ ” “Wanneer die •Seun van die Mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom byeengebring word, en Hy sal hulle van mekaar skei soos 'n herder die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy aan sy regterhand laat staan en die bokke aan sy linkerhand. Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê, ‘Julle, geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk, wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was 'n •vreemdeling, en julle het My as 'n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die •regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as 'n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’ “Dan sal Hy vir dié aan sy linkerhand sê, ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur, wat gereedgemaak is vir die Duiwel en sy engele. Want Ek was honger, en julle het My nie iets te ete gegee nie, dors, en julle het My nie iets te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie as gas verwelkom nie, nakend, en julle het My nie geklee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.’ Dan sal hulle antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien, of dors, of as 'n vreemdeling, of nakend, of siek, of in die tronk, en U nie versorg nie?’ Dan sal Hy hulle antwoord, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’ Hierdie mense sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.” Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.” Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê. Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” •Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer. Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. ” Hy het toe die silwerstukke in die •tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” Hulle het toe 'n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as 'n begraafplaas vir •vreemdelinge. Daarom word daardie grond tot vandag toe Bloedgrond genoem. Toe is die uitspraak van die profeet Jeremia vervul: “Hulle het die dertig silwerstukke, die prys waarteen Hy deur die kinders van Israel gewaardeer is, geneem en dit vir die grond van die pottebakker gegee, net soos die Here my beveel het.” Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: “Is u die koning van die Jode? ” Jesus sê toe: “U sê dit.” Die hele tyd wat Hy deur die leierpriesters en familiehoofde beskuldig is, het Hy niks geantwoord nie. Daarop sê •Pilatus vir Hom: “Hoor u nie wat hulle alles teen u getuig nie?” Hy het hom egter op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die prokurator uitermate verwonderd was. By elke fees het die prokurator die gebruik gehad om vir die skare een gevangene van hulle eie keuse vry te laat. Hulle het in daardie stadium 'n berugte gevangene aangehou met die naam Jesus Barabbas. Toe die skare byeen was, het •Pilatus vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat, Jesus Barabbas of Jesus wat as Christus bekend staan?” Want hy het geweet dat hulle Hom uit naywer oorgelewer het. Terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou 'n boodskap na hom gestuur: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” Die leierpriesters en die familiehoofde het die skare egter oorreed dat hulle op Barabbas moes aandring, en dat hulle Jesus moes laat doodmaak. Die prokurator het hulle weer gevra: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle het geroep: “Barabbas!” Pilatus vra hulle toe: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat as Christus bekend staan?” Hulle roep toe almal uit: “Laat Hy gekruisig word!” Hy het gevra: “Maar watter kwaad het hy dan gedoen?” Hulle het egter nog harder geskreeu: “Laat Hy gekruisig word!” Toe Pilatus sien dat hy niks bereik nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Julle moet maar self toesien. ” Die hele volk het geantwoord: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” Daarop het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar Jesus het hy laat gesel, en toe oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die soldate van die prokurator vir Jesus na die pretorium saamgeneem, en die hele kohort soldate by Hom byeengebring. Hulle het sy klere uitgetrek en 'n helderrooi mantel om Hom gehang. Nadat hulle 'n kroon van doringtakkies gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit, en 'n riet in sy regterhand. Hulle het voor Hom gekniel en met Hom die spot gedryf: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die riet geneem, en Hom herhaaldelik op sy kop geslaan. Nadat hulle met Hom gespot het, het hulle die mantel afgehaal, sy boklere vir Hom aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by 'n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met 'n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak. Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het: “Hy is Jesus, die koning van die Jode. ” Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die •Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!” Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God. ” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig. Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: “Hy roep na Elia.” Dadelik het een van hulle nader gehardloop, 'n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op 'n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.” Toe het Jesus weer met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape •heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik •Seun van God.” Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus. Toe dit laat geword het, het 'n ryk man van Arimatea, met die naam Josef, daar aangekom. Ook hy was 'n dissipel van Jesus. Dié man het •Pilatus genader en die liggaam van Jesus gevra. Toe het Pilatus beveel dat dit gegee word. Josef het die liggaam geneem, dit toegedraai in 'n skoon linnedoek en neergelê in die nuwe graf wat hy vir homself in die rots laat uitkap het. Hy het toe 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. Maria Magdalena was daar, ook die ander Maria, en hulle het teenoor die graf bly sit. Die volgende dag – dit is die dag ná Voorbereidingsdag – het die leierpriesters en die •Fariseërs by •Pilatus byeengekom en gesê: “Meneer, ons het onthou dat toe hy nog geleef het, daardie bedrieër gesê het, ‘Ná drie dae sal Ek weer opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot op die derde dag beveilig word, sodat sy dissipels hom nie gaan steel en vir die volk sê, ‘Hy is opgewek uit die dood!’ nie. Die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. ” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle kry 'n wag van soldate. Gaan beveilig die graf soos julle goeddink.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas. Ná die Sabbat, teen dagbreek op die eerste dag van die week, het Maria Magdalena en die ander Maria gegaan om na die graf te kyk. Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nader gegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu. Uit vrees vir hom het dié wat die graf bewaak, gebewe en soos dooies geword. Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan – daar sal hulle My sien. ” Terwyl die vroue op pad was, het enkele van die wagte na die stad gegaan en alles wat gebeur het, aan die leierpriesters berig. Die leierpriesters het toe met die familiehoofde bymekaargekom, en 'n besluit geneem om 'n groot som geld aan die soldate te gee, met die opdrag: “Sê, ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die prokurator daarvan te hore kom, sal ons hom gerusstel en sorg dat julle nie in die moeilikheid beland nie.” Hulle het die geld toe geneem en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei. Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ” Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die •Seun van God. Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan, “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad gereedmaak. 'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” – so het Johannes gekom. Hy het in die woestyn gedoop en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig. Die hele landstreek van Judea en almal in Jerusalem het na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. Hy het gepreek en gesê: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En 'n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg. Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.” Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het 'n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan. Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei. Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf. 'n Melaatse kom toe na Jesus, en terwyl hy neerkniel, smeek hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” Die melaatsheid het hom onmiddellik verlaat en hy het rein geword. Jesus het hom ernstig gewaarsku, hom dadelik weggestuur en vir hom gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.” Maar hy het weggegaan en begin om dit wyd en syd te vertel en die nuus te versprei. Die gevolg was dat Jesus nie openlik in 'n dorp kon ingaan nie, maar buite in verlate plekke gebly het. Steeds het mense van oral af na Hom toe bly kom. Toe Hy ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis was. Baie mense het daar saamgedrom, met die gevolg dat daar nie meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Hy was besig om die woord aan hulle te verkondig. Toe kom daar mense wat 'n verlamde, gedra deur vier van hulle, na Hom bring. Omdat hulle hom vanweë die skare nie tot by Jesus kon bring nie, het hulle 'n deel van die dak bokant waar Hy was, opgelig, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die slaapmat waarop die verlamde gelê het, laat afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “Kind, jou sondes word vergewe. ” Maar sommige van die skrifkenners het daar gesit en in hulle harte geredeneer: “Wie is hy dat hy so praat? Hy laster! Wie is in staat om sondes te vergewe behalwe net Een, en dit is God? ” Jesus het onmiddellik in sy gees geweet dat hulle so by hulleself redeneer, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte hieroor? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Hy het toe opgestaan, sy slaapmat dadelik opgetel en voor almal uit geloop, sodat almal verbaas was en God geprys en gesê het: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” Jesus het weer weggegaan na die see toe. Die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. In die verbygaan sien Hy Levi, die seun van Alfeus, by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Terwyl Jesus in Levi se huis aangeleun het vir ete, het baie •tollenaars en sondaars saam met Hom en sy dissipels aangeleun, want daar was baie mense wat Hom gevolg het. Toe die skrifkenners onder die •Fariseërs sien dat Hy saam met die sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Waarom eet hy saam met die tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!” Terwyl Hy op die Sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels in die verbygaan begin om are te pluk. Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.” Jesus het weer die •sinagoge binnegegaan. Daar was 'n man met 'n verdorde hand. Hulle het Hom dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbat sou gesond maak, sodat hulle Hom kon aankla. Hy sê toe vir die man met die verdorde hand: “Kom staan hier tussen hulle!” En Hy sê vir hulle: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of om dood te maak?” Hulle het egter stilgebly. Nadat Hy woedend in die rondte na hulle gekyk het, diep bedroef oor die hardheid van hulle harte, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Die man het sy hand uitgesteek, en dit het gesond geword. Die •Fariseërs het toe uitgegaan en dadelik saam met die Herodiane planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring. Jesus het saam met sy dissipels na die see teruggegaan, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg. Ook uit Judea, Jerusalem, Idumea, van oorkant die Jordaan, en uit die omgewing van Tirus en Sidon, het 'n groot menigte na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Hy het toe vir sy dissipels opdrag gegee om vir Hom 'n skuit gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak. En die •onrein geeste het elke keer wanneer hulle Hom sien, voor Hom neergeval en hard geskree: “U is die •Seun van God!” Hy het hulle uitdruklik opdrag gegee om Hom nie bekend te laat word nie. Hy het toe teen die berg uitgeklim. Hy het hulle op wie sy keuse geval het, nader geroep, en hulle het na Hom gekom. Hy het toe twaalf aangestel, wat Hy ook •apostels genoem het, sodat hulle saam met Hom kon wees, en Hy hulle kon uitstuur om te preek, en hulle volmag kon hê om demone uit te dryf. Hy het hierdie twaalf aangestel: Simon, aan wie Hy die naam •Petrus gegee het, Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, die broer van Jakobus – aan hulle het Hy die naam Boanerges, dit is, ‘seuns van die donder’, gegee. Ook Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Taddeus, Simon Kananeus, en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. •Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde. ” Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.” Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” Hy het weer begin om hulle langs die see te onderrig. Daar het toe so 'n groot skare om Hom saamgedrom dat Hy op die see in 'n boot gaan sit het, en die hele skare was op die strand langs die see. Hy het hulle dikwels deur gelykenisse geleer en deur sy lering vir hulle gesê: “Luister, julle! Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei. Omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die dorings geval. Die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het nie vrug voortgebring nie. En nog ander saad het op goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en opbrengs gelewer, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” Toe het Hy gesê: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse. En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee, “ ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie, en hoor, en tog nie verstaan nie, en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’ ” En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.” En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ” En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak. ” Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê. Op daardie dag, toe dit aand geword het, sê Hy vir hulle: “Kom ons gaan na die oorkant!” Hulle het toe die skare agtergelaat en Hom saamgeneem, aangesien Hy reeds in die boot was. Daar was ook ander bote by Hom. 'n Hewige stormwind het opgekom, en die golwe het in die boot geslaan, sodat die boot reeds vol water begin word het. Hy self was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Hulle het aan die oorkant van die see aangekom, in die gebied van die Geraseners. Net toe Hy uit die boot klim, het 'n man met 'n •onrein gees Hom skielik uit die rotsgrafte tegemoet gegaan. Hierdie man se blyplek was tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie. Hy was trouens al dikwels met voetboeie en kettings vasgebind, maar hy het die kettings losgeruk en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom beheer nie. Heeltyd, bedags en snags, het hy tussen die rotsgrafte en op die berge homself al skreeuende met klippe geslaan. Toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en voor Hom neergeval. Hy skreeu toe met 'n harde stem: “Los my uit, Jesus, •Seun van die Allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!” Want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy vra hom toe: “Wat is jou naam?” Hy antwoord Hom: “My naam is Legioen, want ons is baie!” Hy het Jesus ernstig gesmeek om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie. Daar het 'n groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke, dat ons in hulle kan invaar.” Hy het hulle toegelaat. En die onrein geeste het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop van ongeveer tweeduisend het toe op loop gesit teen die helling af, die see in, en in die see versuip. Hulle wagters het op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. En die mense het gaan kyk wat gebeur het. Hulle kom toe by Jesus en sien die besetene daar sit, die een wat die legioen in hom gehad het, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene en ook met die varke gebeur het. Hulle het Hom toe begin smeek om uit hulle gebied weg te gaan. Toe Hy in die boot klim, het die een wat deur demone besete was, Hom gesmeek om by Hom te kon bly. Hy het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” Die man het weggegaan en begin om alles wat Jesus vir hom gedoen het, in Dekapolis bekend te maak, en almal was verbaas daaroor. Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het 'n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. Een van die leiers van die •sinagoge, met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” Jesus het saam met hom vertrek. 'n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’ ” Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.” Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe •Petrus, Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy 'n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net. ” Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee. En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee, dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof. Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.” Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister. 'n Geskikte geleentheid het hom voorgedoen toe Herodes op sy verjaarsdag 'n feesmaal vir sy hoë amptenare, die chiliarge en die vooraanstaande mense van Galilea aangebied het. Sy dogter Herodias het ingekom en Herodes en hulle wat aangeleun het vir ete vermaak deur te dans. Die koning sê toe vir die meisie: “Vra my net wat jy wil, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” En sy het geantwoord: “Die kop van Johannes die Doper.” Toe het sy haastig direk na die koning gegaan en hom versoek: “Ek wil hê dat u onmiddellik vir my die kop van Johannes die Doper op 'n skinkbord bring.” Die koning het toe baie bedroef geword, maar ter wille van sy eed en die gaste wou hy haar dit nie weier nie. Die koning het dadelik sy laksman gestuur en opdrag gegee om die kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. Hy het sy kop op 'n skinkbord gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee. Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle gekom en sy liggaam weggeneem en dit in 'n graf neergelê. En die •apostels het by Jesus byeengekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle saam na 'n verlate plek en rus 'n bietjie op julle eie.” Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie. En hulle het in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op hulle eie te wees. Maar baie mense wat hulle sien vertrek het, het hulle herken en te voet van al die dorpe af daarheen gestroom, en nog voor hulle daar aangekom. Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig. Toe dit al baie laat begin word, kom sy dissipels na Hom en sê: “Dit is 'n verlate plek, en dit is reeds baie laat. Stuur hulle weg na die plase in die omgewing en na die dorpies om vir hulleself iets te ete te gaan koop.” Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en vooruit na die oorkant te vaar, na Betsaida toe, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, en Hy alleen aan land. Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook, en hulle het hard geskreeu; want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was. Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan en vasgemeer. Toe hulle uit die boot klim, het die mense Hom dadelik herken. Hulle het haastig deur die hele landstreek gegaan en dié wat siek was, op slaapmatte begin aandra na waar hulle gehoor het Hy is. Waar Hy ook al in gehuggies of in dorpe of op plase gekom het, het hulle die siekes op die markpleine neergesit en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, is genees. Die •Fariseërs en sommige van die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het toe by Hom byeengekom. Hulle merk toe dat sommige van sy dissipels brood eet met •onrein, dit is met ongewaste, hande. Die Fariseërs en al die Jode eet immers nie tensy hulle hulle hande deeglik gewas het nie, omdat hulle vasklou aan die tradisie van die voorouers. En wanneer hulle van die markplein af kom, eet hulle nie voordat hulle hulleself gewas het nie. Daar is nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle vasklou: die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke. Toe vra die Fariseërs en skrifkenners Hom: “Waarom tree u dissipels nie op in ooreenstemming met die tradisie van die voorouers nie, maar eet hulle brood met onrein hande?” En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan, “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af. Tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ “Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.” Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf. Want Moses het gesê, ‘Eer jou vader en jou moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ Maar julle sê, ‘As 'n mens vir jou vader of moeder sê, “Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, dit is korban” – dit is 'n offergawe – dan hoef 'n mens hoegenaamd niks meer vir sy vader of moeder te doen nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag deur die tradisie wat julle oorgelewer het, en julle doen ook nog baie soortgelyke dinge.” Hy het die skare weer nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal na My en verstaan! Daar is niks wat van buite af in 'n mens ingaan wat jou onrein kan maak nie, maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dit is wat jou onrein maak.” En toe Hy 'n huis binnegegaan het, weg van die skare af, het sy dissipels Hom oor die gelykenis uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “Is ook julle so sonder begrip? Verstaan julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, jou onrein kan maak nie? Die kos gaan immers nie na jou hart nie, maar na jou maag, en word dan in die privaat uitgewerp.” So het Hy alle kos rein verklaar. Maar Hy het gesê: “Wat uit 'n mens uitgaan, dit maak 'n mens onrein. Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak 'n mens onrein.” Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het 'n huis binnegegaan en wou nie hê dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie. En gou het daar 'n vrou wie se dogtertjie 'n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. Dit was 'n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit. Jesus het weer uit die gebied van Tirus vertrek en deur Sidon na die See van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis. Hulle bring toe iemand wat doof was en met 'n spraakgebrek na Hom, en smeek Hom om die man die hande op te lê. Nadat Hy die man eenkant toe geneem het, weg van die skare af, het Hy sy vingers in die man se ore gesteek, gespoeg en sy tong aangeraak. Nadat Hy na die hemel opgekyk het, sug Hy en sê vir hom: “Effata!” dit is, ‘Gaan oop!’ En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy kon normaal praat. Jesus het hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie. Maar hoe meer Hy hulle dit beveel het, hoe meer het hulle dit uitbasuin. Hulle was uitermate verwonderd en het gesê: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.” Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan. Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek. Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ” Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte? “Het julle oë, en sien julle nie? Het julle ore, en hoor julle nie? “En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?” Hulle kom toe in Betsaida aan. Die mense het 'n blinde man na Jesus gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak. Toe vat Hy die blinde man aan die hand en lei hom uit die dorp uit weg. En nadat Hy op sy oë gespoeg en sy hande op hom geplaas het, vra Hy hom: “Sien jy iets?” Die man het opgekyk en gesê: “Ek sien die mense. Ek sien hulle rondloop soos bome.” Daarop sit Jesus weer sy hande oor die man se oë, en het sy oë oopgemaak, en hy was genees en kon alles duidelik sien. Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie in die dorp ingaan nie.” Jesus en sy dissipels het na die dorpe van Caesarea-Filippi vertrek. Op pad het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper; ander sê Elia, en nog ander sê een van die profete.” Hy vra hulle toe: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus antwoord Hom: “U is die Christus.” Jesus het hulle toe opdrag gegee om niemand van Hom te vertel nie. Hy het begin om hulle te leer dat die •Seun van die Mens baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, en ná drie dae moet opstaan. Hy het openlik hieroor gepraat. •Petrus het Hom eenkant toe geneem en Hom begin berispe. Maar Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus berispe: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit 'n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele.” En Hy het vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat daar sommige van julle is wat hier staan, wat beslis nie die dood sal smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God met krag sien kom het nie. ” Ses dae later neem Jesus vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam en lei hulle teen 'n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. Hy het toe voor hulle van gedaante verander. Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie. Toe het Elia saam met Moses aan hulle verskyn, en hulle was besig om met Jesus te praat. Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het immers nie geweet wat hy moet sê nie, want hulle was totaal verskrik. Daar kom toe 'n wolk wat 'n skaduwee oor hulle gooi, en uit die wolk kom daar 'n stem: “Dit is my Seun, my geliefde, luister na Hom! ” Toe hulle rondkyk, sien hulle skielik niemand behalwe net Jesus by hulle nie. Terwyl hulle die berg afgaan, het Jesus hulle beveel om niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het dié saak vir hulleself gehou, terwyl hulle onderling bespiegel het wat “uit die dood opstaan” beteken. Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifkenners dat Elia eers moet kom?” Hy het hulle geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles te herstel. En waarom staan daar dan geskryf oor die Seun van die Mens dat Hy baie moet ly en verag word? Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom en hulle het aan hom gedoen wat hulle wou, soos daar oor hom geskryf staan.” Toe hulle by die dissipels kom, sien hulle 'n groot skare rondom hulle, en skrifkenners wat met hulle redeneer. Die hele skare was dadelik verras toe hulle Jesus sien, en het nader gehardloop en Hom gegroet. Hy het hulle gevra: “Waaroor redeneer julle met hulle?” Een uit die skare het Hom geantwoord: “Meester, ek het my seun na U gebring; hy het 'n gees in hom wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom neer. Die seun kry dan skuim om sy mond, kners op sy tande en kry stuiptrekkings. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Hy hulle: “O, ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Hulle het die seun na Hom gebring. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun dadelik stuiptrekkings kry. Hy het op die grond geval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus het die vader gevra: “Hoe lank gebeur dit al met hom?” Hy het geantwoord: “Van kleins af. Baie keer het die gees hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Jesus vra hom toe: “ ‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo. ” Onmiddellik roep die vader van die kind uit: “Ek glo! Kom my ongeloof te hulp! ” Toe Jesus sien dat 'n skare saamdrom, het Hy die •onrein gees bestraf en vir hom gesê: “Stom en dowe gees, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom inkom nie!” Die gees het toe geskreeu en die seun baie stuiptrekkings laat kry en uit hom uitgegaan. Die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie mense gesê het: “Hy het gesterf.” Jesus het egter sy hand gevat, hom regop gehelp, en hy het opgestaan. Nadat Jesus 'n huis binnegegaan het, en hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons dan die gees nie uitdryf nie?” Hy het vir hulle gesê: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie.” Hulle het daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand daarvan weet nie. Hy was immers besig om sy dissipels te leer, en het vir hulle gesê: “Die •Seun van die Mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak, maar drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.” Hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie en was bang om Hom daaroor uit te vra. Hulle het in Kapernaum aangekom, en toe Jesus by hulle in die huis was, vra Hy hulle: “Waaroor het julle op pad geredeneer?” Hulle het egter stilgebly, want hulle het op pad onder mekaar geredekawel oor wie die belangrikste is. Nadat Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.” Hy het 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy neem hom toe in sy arms en sê vir hulle: “Wie een van hierdie kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.” Johannes het vir Hom gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” Maar Jesus het gesê: “Moet hom nie keer nie, want niemand wat in my Naam 'n kragtige daad doen, kan net daarna sleg van My praat nie. Want wie nie teen ons is nie, is vir ons. Wie vir julle in my Naam 'n beker water te drinke gee omdat julle aan Christus behoort – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.” “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit sou vir hom beter wees as die maalklip van 'n donkie om sy nek gehang en hy in die see gegooi word. As jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna, in die onblusbare vuur. As jou voet jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om kreupel die lewe in te gaan as om met twee voete in Gehenna gegooi te word. En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit! Dit is beter vir jou om met een oog die •koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gegooi te word, waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie. Want elkeen sal met vuur gesout word. Sout is goed, maar as sout smaakloos geword het, waarmee sal julle dit weer smaak gee? Julle moet sout in julleself hê en in vrede met mekaar leef. ” Jesus het gereedgemaak, daarvandaan vertrek en in die gebied van Judea oorkant die Jordaan aangekom. Die skares stroom toe opnuut na Hom toe, en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer onderrig. Daar het ook •Fariseërs nader gekom en, om Hom te toets, gevra of dit vir 'n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” Hulle antwoord toe: “Moses het 'n man toegelaat om 'n skeibrief te skryf en te skei. ” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Terug in die huis het die dissipels Hom hieroor uitgevra. Hy antwoord hulle toe: “Wie van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; en as sy van haar man skei en met 'n ander man trou, pleeg sy egbreuk.” Hulle het kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon aanraak, maar die dissipels het hulle berispe. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” Hy neem hulle toe in sy arms en seën hulle terwyl Hy sy hande op hulle lê. Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik. ” •Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma's en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.” Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.” Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word? ” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.” Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” Hulle het in Jerigo aangekom. En toe Hy met sy dissipels en 'n groot skare uit Jerigo vertrek, het 'n blinde bedelaar, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “•Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” Baie mense het hom berispend aangesê om stil te bly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe. Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord Hom: “Rabboeni, dat ek kan sien. ” Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered. ” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg. Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ ” Hulle het gegaan en 'n donkievul gevind, vasgemaak by 'n deur buite op die straat, en hom losgemaak. Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom, dié van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste!” Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf. Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor. Hulle het in Jerusalem aangekom. Jesus het toe die tempelterrein binnegegaan en die mense wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, begin uitjaag. Hy het ook die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi, en niemand toegelaat om enige voorwerp oor die tempelterrein te dra nie. Hy het hulle geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf nie, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies genoem word’? Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak.” Die leierpriesters en die skrifkenners het dit gehoor en wou Hom om die lewe bring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verwonderd was oor sy lering. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uitgegaan. Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. •Petrus het onthou – en sê vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!” Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. •Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef. ” Hulle het toe weer in Jerusalem aangekom. En terwyl Hy op die tempelterrein rondstap, kom die leierpriesters, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom en vra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het aan jou dié gesag gegee dat jy hierdie dinge kan doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord My, en dan sal Ek julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van die hemel of van mense? Antwoord My!” Hulle het onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê, ‘van mense...’?” Hulle was bang vir die skare, want almal het Johannes inderdaad as 'n profeet beskou. Daarom het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hy het toe met hulle in gelykenisse gepraat: “'n Man het 'n wingerd aangeplant. Hy het dit omhein, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Op die regte tyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hy van hulle die opbrengs van die wingerd kon ontvang. Maar hulle het hom gegryp, afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf na hulle gestuur, en hierdie een het hulle oor die kop geslaan en verneder. Hy stuur toe nog een. En hierdie een het hulle doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het. Hy het nog net een oorgehad – sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle gestuur met die gedagte: Hulle sal my seun met respek behandel. Daardie landbouers het egter onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood, en die erfdeel sal ons s'n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom, die landbouers doodmaak en die wingerd vir ander gee. Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees, “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ ” Hulle wou Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het immers besef dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle het Hom met rus gelaat en weggegaan. Hulle stuur toe sommige van die •Fariseërs en Herodiane na Hom, sodat hulle Hom op 'n woord kon vastrek. Hulle kom toe en sê vir Hom: “Meester, ons weet dat u opreg is en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar onderrig die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar om belasting aan die keiser te betaal, of nie? Behoort ons te betaal, of behoort ons nie te betaal nie?” Maar Jesus was bewus van hulle skynheiligheid en sê vir hulle: “Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe een. Hy vra hulle: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom. Die •Sadduseërs kom toe na Hom, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer sterf’ en 'n vrou agterlaat, ‘maar nie 'n kind nalaat nie, sy broer die vrou moet neem en 'n nageslag vir sy broer moet verwek’. Daar was sewe broers. Die eerste het 'n vrou geneem en by sy dood nie 'n nageslag agtergelaat nie. Die tweede het haar toe geneem en gesterf sonder om 'n nageslag agter te laat. Die derde net so. Nie een van die sewe het 'n nageslag agtergelaat nie. Laaste van almal het ook die vrou gesterf. By die opstanding, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “Is dit nie die rede waarom julle dwaal nie: omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie? Want wanneer hulle uit die dood opstaan, tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemele. En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes. Julle dwaal erg!” Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?” Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’. Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.” Die skrifkenner het vir Hom gesê: “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, dat ‘Hy die Enigste is en dat daar geen ander is as Hy nie’. ‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die •brandoffers en diereoffers.” Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die •koninkryk van God nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie. Ná hierdie antwoord van Hom het Jesus op die tempelterrein onderrig gegee en gesê: “Hoe is dit dat die skrifkenners sê dat die Christus Dawid se seun is? Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het. ’ “Dawid self noem Hom ‘Here’. Hoe kan Hy dan sý seun wees?” Die groot skare het graag na Hom geluister. In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die •sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.” Jesus het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die offergawekis gooi. Baie rykes het baie ingegooi. 'n Arm weduwee het gekom en twee lepton, wat saam 'n kwadrant werd is, ingegooi. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het. Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. ” Toe Hy die tempelterrein verlaat, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meester, kyk net watter indrukwekkende klippe en geboue!” Jesus sê toe vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word. ” Terwyl Jesus op die Olyfberg, regoor die tempelterrein, gesit het, het •Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom eenkant gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge volbring sal word?” Jesus het hulle toe geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Baie sal in my Naam kom en sê, ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. Wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik raak nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Want nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op een plek ná die ander voorkom, en daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge is die begin van die smarte. “ Maar wat julle betref, wees op julle hoede! Hulle sal julle aan sanhedrins oorlewer, julle sal in •sinagoges geslaan word en voor prokurators en konings teregstaan ter wille van My, sodat julle voor hulle kan getuig. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Broer sal broer aan die dood oorlewer, en 'n vader sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie enduit volhard, dié sal gered word.” “Wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan of ingaan om iets uit sy huis te gaan haal nie; en wie op sy landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat dit nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. As die Here daardie dae nie ingekort het nie, sou geen mens gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes, wat Hy uitverkies het, het Hy die dae ingekort.” “As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk daar!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Maar wees julle op julle hoede. Ek het alles vir julle vooruit gesê. “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie; en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte in die hemele sal geskud word.’ “Dan sal hulle die •Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Hy sal dan die engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die verste hoek van die aarde tot die verste hoek van die hemel.” “ Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “ Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die •Seun nie – net die Vader. Pasop en wees waaksaam, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd daar is nie. “ Dit is soos 'n man wat op reis is en sy huis agterlaat en die beheer oordra aan sy slawe, elkeen met sy eie taak, en die deurwag beveel om waaksaam te bly. Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie – teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie. Moenie dat hy, wanneer hy onverwags kom, julle aan die slaap kry nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal, bly waaksaam!” Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood sou twee dae later plaasvind. Die leierpriesters en skrifkenners het 'n manier gesoek om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk ontstaan nie.” Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar 'n vrou met 'n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: “Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.” En hulle het teen haar uitgevaar. Jesus het egter gesê: “Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. Hulle was bly toe hulle dit hoor, en het beloof om vir hom geld te gee. Daarop het hy na 'n manier gesoek om Hom op 'n gepaste geleentheid oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal afvallig raak, want daar staan geskryf: “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus sê daarop vir Hom: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” Jesus antwoord hom: “•Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.” Maar Petrus het uitdruklik gesê: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Almal het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!” En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug. Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En “julle sal die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel.” Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee. Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil. En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan •Pilatus uitgelewer. Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.” Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!” Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was. Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat. Daar was 'n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens 'n opstand. Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het. Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat. Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?” Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word. Die soldate het Hom weggelei, die paleis, naamlik die pretorium, binne, en die hele kohort soldate byeengeroep. Toe trek hulle vir Hom 'n purperrooi mantel aan, en sit vir Hom 'n doringkroon op wat hulle gevleg het, en begin Hom spottend groet: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het Hom herhaaldelik met 'n riet oor die kop geslaan, op Hom gespoeg, en knielend aan Hom eer bewys. En nadat hulle Hom bespot het, het hulle die purperrooi mantel afgehaal en sy boklere vir Hom aangetrek. Hulle lei Hom toe weg om Hom te kruisig. Hulle het 'n verbyganger, 'n sekere Simon van Sirene, wat van die platteland gekom het, die vader van Aleksander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra. Hulle bring Jesus toe na die plek Golgota, wat, as dit vertaal word, ‘Kopbeenplek’ beteken. Hulle wou Hom wyn, gemeng met mirre, gee, maar Hy het dit nie geneem nie. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy boklere deur daaroor te loot oor wie wat sou neem. Dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het. Die inskripsie van die aanklag teen Hom is bo Hom aangebring: “Die koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Ha! Jy wat die •tempel afbreek en in drie dae opbou, red jouself! Kom af van die kruis!” Op dieselfde manier het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!” Ook hulle wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig. Toe die sesde uur aanbreek, het dit oor die hele aarde donker geword tot die negende uur toe. Op die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van die omstanders dit hoor, sê hulle: “Kyk, hy roep Elia.” Iemand het gehardloop, 'n spons met suur wyn deurweek, dit op 'n riet gesit en vir Hom gehou om te drink, met die woorde: “Wag, laat ons sien of Elia kom om hom af te haal.” Jesus het met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur, van bo tot onder. Toe die centurio, wat reg oorkant Hom gestaan het, Hom sy asem so sien uitblaas, sê hy: “Hierdie man was werklik •Seun van God!” Daar was ook vroue wat op 'n afstand gekyk het, onder wie Maria Magdalena, Maria, die moeder van die jong Jakobus en Joses, en Salome. Dit is die vroue wat Hom, toe Hy in Galilea was, gevolg en bedien het. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem gegaan het, was ook daar. Toe dit reeds laat geword het, en aangesien dit die Voorbereidingsdag was, die dag voor die Sabbat, het Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Raad, wat ook uitgesien het na die •koninkryk van God, na •Pilatus gegaan. Hy het moed bymekaargeskraap en die liggaam van Jesus gevra. Pilatus was verbaas dat Hy al dood was, en het die centurio laat roep en hom gevra of Hy reeds 'n geruime tyd dood was. Toe hy dit by die centurio verneem het, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het toe 'n linnedoek gekoop, en Hom, nadat hy Hom van die kruis afgehaal het, in die linnedoek toegedraai en neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was, en 'n klip teen die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is. Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was 'n baie groot klip. Toe hulle die graf binnegaan, het hulle 'n jong man met 'n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang. Nadat Jesus vroeg die oggend op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe demone uitgedryf het. Sy het dit gaan vertel vir die mense wat by Hom was, terwyl hulle treur en huil. Toe hulle hoor dat Hy leef en sy Hom gesien het, het hulle dit nie geglo nie. Hierna het Hy in 'n ander gestalte aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland. Hulle het dit vir die res gaan vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle vir ete aangeleun het. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die mense wat gesien het dat Hy opgewek is, nie geglo het nie. Hy sê toe vir hulle: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal verlos word; maar wie nie tot geloof gekom het nie, sal veroordeel word. Hierdie tekens sal hulle wat tot geloof gekom het, vergesel: In my Naam sal hulle demone uitdryf, in nuwe tale praat, en slange met hulle hande optel. As hulle iets dodeliks sou drink, sal dit hulle nie kwaad aandoen nie, en op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe uitgegaan en oral gepreek. Die Here het met hulle meegewerk en die prediking bevestig met wondertekens wat daarop gevolg het. •Amen. Baie mense het reeds hulle hand daaraan gewaag om 'n verhaal saam te stel oor dit wat onder ons tot vervulling gekom het, soos die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het. Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf, sodat u vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is. In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie, en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël, wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ” In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ” Maria het toe gesê: “My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het. Kragtige dade verrig Hy met sy arm. Die denke van hoogmoediges verwar Hy, heersers ruk Hy van hulle trone af, en geringes verhoog Hy. Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg. Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan, deur sy ontferming in gedagte te hou, soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het, aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.” Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe. Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly. Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys. Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom. Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het, sodat ons, gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, en al ons dae voor Hom in heiligheid en •geregtigheid kan leef. En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het. In daardie tyd het keiser Augustus 'n dekreet uitgevaardig dat die bevolking van die hele ryk geregistreer moet word. Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie. Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het! ” Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is. Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe”. En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof: “Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, 'n lig wat vir die nasies tot openbaring dien, en eer bring aan u volk Israel.” Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as 'n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel, uit die stam van Aser. Sy was al op gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, en was nou 'n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat. Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die Wet van die Here van hulle verwag, het hulle na Galilea teruggegaan, na hulle tuisdorp Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en vol wysheid, en die genade van God was met Hom. Jesus se ouers het elke jaar vir die fees van die Pasga na Jerusalem gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte vir die fees daarheen gegaan. Ná afloop van die fees het hulle teruggekeer, maar die Kind Jesus het sonder sy ouers se medewete in Jerusalem agtergebly. Omdat hulle gedink het dat Hy elders in die reisgeselskap was, was hulle reeds 'n dag lank op pad voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle teruggedraai na Jerusalem om Hom te soek. Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle baie ontsteld. Sy moeder sê toe vir Hom: “Kind, hoe kon jy so iets aan ons doen? Kyk, jou vader en ek het angstig na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” Hulle het egter nie verstaan wat Hy vir hulle gesê het nie. Toe het Hy saam met sy ouers vertrek en in Nasaret aangekom, en Hy was gehoorsaam aan hulle. Maar sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense. In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius •Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn 'n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, soos daar geskryf staan in die •boekrol met die woorde van die profeet Jesaja: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk! Dan sal alle mense sien hoe God verlossing bring.’ ” Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” Daar het ook •tollenaars gekom om gedoop te word, en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?” Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.” Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.” Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” Johannes het die volk ook oor baie ander dinge vermaan, en die goeie boodskap aan hulle verkondig. Hy het die tetrarg Herodes herhaaldelik tereggewys oor Herodias, sy broer se vrou, en oor al die booshede wat Herodes gepleeg het. Afgesien van al hierdie dade het Herodes Johannes ook nog in die tronk laat opsluit. In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het in 'n sigbare vorm soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar het ook 'n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde •Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Jesus was ongeveer dertig jaar oud toe Hy met sy werk begin het. Hy is beskou as die seun van Josef, seun van Eli, seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef, seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai, seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda, seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri, seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er, seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi, seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim, seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid, seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson, seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda, seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor, seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala, seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg, seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan, seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, seun van God. Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” Hierop het die Duiwel Hom na 'n hoë plek geneem, en in 'n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As u my aanbid, sal dit alles u s'n wees.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ” Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir 'n tyd lank van Jesus weggebly. Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in hulle •sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.” Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” En Hy het gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en 'n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.” Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Hierna het Hy na Kapernaum afgegaan, 'n stad in Galilea, waar Hy die mense gereeld op die Sabbatdag onderrig het. Hulle was verbaas oor sy lering, omdat Hy met gesag gepraat het. In die •sinagoge was daar 'n man in wie daar die gees van 'n •onrein demoon was. Hy het kliphard geskreeu: “Ag, los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God! ” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die demoon het die man tussen hulle op die grond laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom te beseer. Almal was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat is besonders omtrent hierdie man se woorde, dat Hy die onrein geeste met soveel gesag en mag gebied, en hulle dan die mense verlaat?” Die nuus oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei. Nadat Jesus die •sinagoge verlaat het, is Hy na Simon se huis en het daar ingegaan. Simon se skoonmoeder was siek met 'n hoë koors, en daarom het hulle Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het oor haar gebuk en die koors bestraf, en dit het haar verlaat. Sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Teen sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Daar het ook demone uit baie mense uitgegaan, terwyl hulle skreeu: “U is die •Seun van God!” Maar Hy het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om te praat nie. Hulle het immers geweet dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy vertrek en na 'n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” En Hy het voortgegaan om in die •sinagoges van Judea te preek. Op 'n dag, toe Jesus langs die Meer van Gennesaret staan en die skare Hom verdring om die woord van God te hoor, sien Hy twee bote langs die meer lê. Die vissermanne het al uitgeklim en was besig om hulle nette uit te spoel. Jesus het in een van die bote geklim, die een wat aan Simon behoort, en hom gevra om 'n klein entjie van die land af weg te roei. Hy het gaan sit en die skare van die skuit af onderrig. Toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.” “Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het. Toe Simon •Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige mens.” Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg. En toe Jesus in een van die dorpe kom, staan daar skielik 'n man vol melaatse swere. Toe hy Jesus sien, val hy plat op sy gesig neer en smeek Hom: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil, word rein!” En sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn. Jesus het hom beveel om dit vir niemand te vertel nie en gesê: “Gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskryf het, as bewys vir hulle.” Die nuus oor Jesus het egter nog verder versprei. Groot skares het om Hom saamgedrom om na Hom te luister en van hulle kwale genees te word. Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid. Op 'n dag, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook •Fariseërs en wetgeleerdes gesit, wat uit elke dorpie van Galilea en Judea en van Jerusalem gekom het. Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Net toe kom daar mense aan wat 'n verlamde man op 'n slaapmat dra. Hulle wou hom in die huis indra en voor Jesus neersit, maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ” Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal was verwonderd en het God geprys. Hulle is met diep ontsag vervul en het gesê: “Vandag het ons iets ongeloofliks gesien.” Hierna het Jesus buitentoe gegaan en 'n •tollenaar met die naam Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” En hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg. Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gehou waar 'n klomp •tollenaars en ook ander mense saam met hulle vir ete aangeleun het. Die •Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Die mense het vir Hom gesê: “Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die •Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.” Jesus het hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word. Dan, in daardie dae, sal hulle vas.” Hy het vir hulle nog 'n gelykenis vertel: “Niemand skeur 'n stuk materiaal uit 'n nuwe kledingstuk en werk dit op 'n ou kledingstuk vas nie. As mens dit doen, sal die nuwe kledingstuk skeur, en boonop sal die nuwe stuk nie by die ou kledingstuk pas nie. “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê hy.” Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet. Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ” Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.” Op 'n ander Sabbat, toe Hy weer na die •sinagoge gegaan en daar onderrig gegee het, was daar 'n man wie se regterhand verdor was. Die skrifkenners en die •Fariseërs het Hom dopgehou om te sien of Hy op die Sabbat iemand gesond sou maak, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes aangaan, en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Kom staan hier tussen ons.” Die man het opgestaan en daar gaan staan. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?” Nadat Hy in die rondte na hulle almal gekyk het, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword. Hulle was egter buite hulleself van woede, en het onder mekaar beraadslaag oor wat hulle met Jesus kon doen. In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God. Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem. Hulle was Simon, wat Hy ook •Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Simon met die naam “Seloot”, en Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot, wat 'n verraaier geword het. Nadat Hy saam met hulle van die berg af gekom het, het Hy op 'n gelykte gaan staan. Daar was 'n groot groep van sy dissipels en ook 'n menigte mense uit die volk – van oor die hele Judea en Jerusalem, en ook uit die kusstreke rondom Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook mense wat deur •onrein geeste gepla is, is daarvan genees. En die hele skare het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan en Hy almal genees het. Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die •koninkryk van God behoort aan julle. Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die •Seun van die Mens. “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. “Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.” “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ” Hy het ook 'n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie 'n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in 'n sloot val nie? 'n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Broer, laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ terwyl jy die balk in jou eie oog nie raaksien nie? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.” “'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra weer nie goeie vrugte nie. Elke boom word aan sy eie vrug geken. Van 'n doringstruik pluk 'n mens tog nie vye of van 'n doringbos 'n tros druiwe nie. 'n Goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart, en 'n slegte mens bring die slegte voort uit die slegtheid wat in hom is; want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” “ Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie? “Elkeen wat na My toe kom en my woorde hoor en daarvolgens handel – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat besig was om 'n huis te bou. Hy het gespit en diep gegrawe, en die fondament op die rots gelê. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit die huis nie laat ineenstort nie, omdat dit goed gebou was. “Maar wie hoor en nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder 'n fondament op die grond bou. As die vloedwaters dit tref, stort dit onmiddellik ineen. Die verwoesting van daardie huis was geweldig.” Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei. Johannes se dissipels het hom van al hierdie dinge vertel. Johannes het twee van sy dissipels laat roep en hulle na die Here gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Toe die manne by Hom aankom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U gestuur om te vra, ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’ ” Op daardie oomblik was Jesus besig om baie mense van hulle siektes en kwale en bose geeste te genees en om baie blindes weer te laat sien. Hy het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: “Blindes sien weer, verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.” Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan, “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie, en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.” Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie. “Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie huil nie!’ “Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, “en julle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “En die •Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, “en julle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van tollenaars en sondaars. ’ “Maar die wysheid word deur al haar kinders reg bewys.” Een van die •Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het die Fariseër se huis binnegegaan en vir ete aangeleun. En kyk, daar was 'n sondige vrou in die dorp wat gehoor het dat Hy by die Fariseër se huis gaan eet het. Sy het 'n albasterfles vol reukolie gevat en agter Jesus, by sy voete, gaan staan. Sy het gehuil en begin om sy voete met haar trane nat te maak. Sy het sy voete met haar hare afgedroog, dit gesoen, en met die reukolie ingevryf. Toe die Fariseër wat Hom uitgenooi het, dit sien, het hy in sy hart gedink, as hierdie man 'n profeet was, sou hy tog geweet het wie dit is wat hom aanraak en watter soort vrou sy is, dat sy 'n sondige vrou is. Maar Jesus het vir hom gesê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Sê maar, Meester! ” antwoord hy. “Twee mense was by 'n sekere geldskieter in die skuld. Die een het vyfhonderd denarius geskuld, en die ander vyftig. Omdat hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy albei se skuld kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” En Jesus sê vir hom: “Jy het reg geoordeel.” Toe het Hy omgedraai na die vrou en vir Simon gesê: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis ingestap het, het jy nie eers vir my water vir my voete gegee nie, maar sy het my voete met haar trane nat gemaak en met haar hare afgedroog. Jy het My nie 'n soen gegee nie, maar sy het, vandat Ek hier aangekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Jy het my kop nie met olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met reukolie ingevryf. Daarom sê Ek vir jou, haar sondes – en dit was baie – is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.” En vir haar het Hy gesê: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin die mense wat aangeleun het vir ete onder mekaar sê: “Wie is hierdie man, dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Kort daarna het Jesus deur die een stad en dorp na die ander gereis om te preek en die evangelie van die •koninkryk van God te verkondig. Die twaalf het saam met Hom gereis, en ook 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria, wat bekend was as Magdalena, uit wie sewe demone uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna, en baie ander wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het. Uit die een dorp ná die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie. Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik. En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer.” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. Hy het geantwoord: “Aan julle is gegee om die geheimenisse van die •koninkryk van God te verstaan, maar vir ander bly dit bloot gelykenisse, sodat hulle “ ‘selfs al kyk hulle, nie sal sien nie, en selfs al hoor hulle, nie sal verstaan nie.’ ” “Dit is wat die gelykenis beteken: Die saad is die woord van God. Die saad langs die pad is die mense wat die woord wel hoor, maar dan kom die Duiwel en neem die woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie tot geloof kom en verlos word nie. Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit. Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie. Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met 'n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” “ Niemand steek 'n lamp op en maak dit toe met 'n houer, of sit dit onder 'n bed nie. Trouens, 'n mens sit dit op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word. ” Jesus se moeder en broers het na Hom gekom, maar as gevolg van die skare kon hulle Hom nie bereik nie. Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en broers staan buite en wil U graag sien.” Maar Jesus antwoord hulle: “Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en my broers.” Op 'n sekere dag het Jesus en sy dissipels in 'n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer,” en hulle het uitgevaar. Tydens die vaart het Hy aan die slaap geraak. 'n Hewige stormwind het op die meer neergeswiep. Die boot het vol water begin word, en hulle was in lewensgevaar. Hulle het Jesus gaan wakker maak en uitgeroep: “Meester, Meester, ons vergaan!” Hy het opgestaan en die wind en die stormsee bestraf. Dit het bedaar, en alles het kalm geword. Toe sê Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” Hulle was met ontsag vervul en verwonderd, en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?” Hierna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat oorkant Galilea geleë is. Toe Jesus aan wal stap, het 'n man wat in die mag van demone was, Hom uit die dorp tegemoet gegaan. Hy het al vir 'n hele ruk nie meer klere gedra nie, en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen die rotsgrafte. Toe hy Jesus sien, het hy uitgeroep, voor Hom neergeval en met 'n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, •Seun van God, die Allerhoogste! Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” Want Jesus was op die punt om die •onrein gees wat hom al baie kere beetgepak het, te beveel om uit die man uit te gaan. Hulle het hom voortdurend met hand- en voetboeie geboei om hom in bedwang te hou, maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en is deur die demoon na verlate plekke gedryf. Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” “Legioen,” het hy geantwoord, want baie demone het in hom ingevaar. Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onpeilbare diepte te laat weggaan nie. Daar het 'n taamlike groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar, en Hy het hulle toegelaat. Die demone het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip. Toe die wagters dit sien gebeur, het hulle op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. Die mense het gaan kyk na wat gebeur het, en toe hulle by Jesus aankom, vind hulle die man uit wie die demone uitgegaan het, waar hy by Jesus se voete sit, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene gered is. Toe het al die inwoners van die omgewing van Gerasa Jesus versoek om van hulle af weg te gaan, omdat hulle deur groot angs oorval is. Hy het toe in die boot geklim en teruggekeer. Die man uit wie die demone uitgegaan het, het Jesus gesmeek om by Hom te kon bly. Maar Hy het hom weggestuur en gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder. Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!” Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie. Jesus het die twaalf bymekaargeroep, en aan hulle mag en gesag oor alle demone gegee en om siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om die •koninkryk van God te verkondig en om die siekes gesond te maak, en vir hulle gesê: “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie 'n wandelstok of 'n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie. Watter huis julle ook al binnegaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. En as enigiemand julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” Hulle het toe vertrek en die land van een dorpie na die ander deurreis, terwyl hulle die evangelie verkondig en oral siekes gesond maak. Herodes, die tetrarg, het van al hierdie gebeurtenisse gehoor en was verward, omdat sommige mense sê dat Johannes uit die dood opgewek is, terwyl ander beweer dat Elia verskyn het, en nog ander dat een van die profete van ouds opgestaan het. Herodes het gesê: “Johannes het ek onthoof, maar wie is hierdie persoon van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het probeer om Hom te siene te kry. Die •apostels het teruggekeer en vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Toe het Hy, met net hulle by Hom, na 'n dorp gegaan wat Betsaida genoem word. Maar die skare het dit agtergekom en Hom daarheen gevolg. Hy het hulle verwelkom, en met hulle gepraat oor die •koninkryk van God, en diegene wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak. Dit het al skemer begin raak. Toe het die twaalf nader gekom en vir Hom gesê: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” Hy sê toe vir hulle: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Maar hulle antwoord: “Ons het niks meer nie as net vyf brode en twee visse, tensy ons gaan kos koop vir al hierdie mense.” Daar was ongeveer vyfduisend mans. Hy sê toe vir sy dissipels: “Laat hulle gaan sit in groepe van ongeveer vyftig.” Hulle het so gemaak en almal laat sit. Hy het die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel. Op 'n keer, toe Jesus alleen gebid het, met slegs sy dissipels by Hom, het Hy hulle gevra: “Wie sê die mense is Ek?” En hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, maar ander sê Elia, en ander weer dat een van die profete van ouds opgestaan het.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus het geantwoord: “Die Christus van God.” Jesus het hulle opdrag gegee om dit aan niemand te vertel nie, “want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.” Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie. Nadat hulle die volgende dag van die berg afgekom het, het 'n groot skare mense Hom tegemoet gekom. En skielik het 'n man uit die skare hard uitgeroep: “Meester, ek smeek U, kom kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind. Kyk, 'n gees pak hom gereeld beet en dan gaan hy skielik aan die skreeu. Hy gee hom stuiptrekkings met skuim om die mond, en verniel hom en wil hom beswaarlik los. Ek het u dissipels gesmeek om hom uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? Bring jou seun hier.” En terwyl die seun nader kom, laat die demoon hom val en stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die •onrein gees bestraf, en die kind gesond gemaak en hom aan sy vader teruggegee. Almal was verstom oor die grootheid van God. Terwyl almal nog verbaas was oor al die dinge wat Hy gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Luister goed na hierdie woorde: Die •Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word. ” Hulle het hierdie uitspraak egter nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle verborge, sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Hom oor hierdie uitspraak uit te vra. 'n Argument het onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet wat hulle in hulle harte dink, en trek toe 'n kindjie nader en laat hom langs Hom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My. En wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Die geringste onder julle almal, hý is die belangrikste.” Hierop het Johannes gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle. ” Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by 'n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? ” Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. Hulle het toe na 'n ander dorpie gegaan. Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Hom gesê: “Ek sal U volg, waar U ook al gaan.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.” Vir 'n ander een het Hy gesê: “Volg My!” Maar hy het geantwoord: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die •koninkryk van God.” Nog 'n ander een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem. ” En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. “ Moenie 'n beursie of 'n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’ As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie. As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die •koninkryk van God op hande.’ Maar as julle in 'n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, ‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.” “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! “Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. ” Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die •Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” Toe hulle op hulle eie was, het Jesus na sy dissipels gedraai en vir hulle gesê: “Gelukkig is die oë wat sien wat julle sien, want Ek sê vir julle, baie profete en konings sou graag wou sien wat julle sien, maar het nie gesien nie, en sou graag wou hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie.” En kyk, 'n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ” “Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?” Hierop het Jesus geantwoord: “'n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 'n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. En net so het ook 'n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na 'n herberg en versorg hom daar. Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ Wie van hierdie drie, dink jy, was 'n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.” Terwyl hulle op reis was, het Hy by 'n sekere dorpie gekom waar 'n vrou met die naam Martha Hom as gas ontvang het. Sy het 'n suster met die naam Maria gehad, wat by die Here se voete gaan sit het om na sy woorde te luister. Maar Martha was besig met al die voorbereidings. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.” Op 'n keer het Jesus op 'n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het. ” Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, “ ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u •koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het 'n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. “Watter vader onder julle sal, as sy seun hom 'n vis vra, hom 'n slang in plaas van 'n vis gee? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!” Op 'n dag het Jesus 'n demoon wat stom was, uit 'n man gedryf. Nadat die demoon hom verlaat het, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd, maar sommige van hulle het beweer: “Dit is deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hy die demone uitdryf.” Ander weer het van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te toets. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en 'n huis wat verdeeld is, kom tot 'n val. As ook Satan teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk dan staande bly? Tog beweer julle dat Ek deur Beëlsebul demone uitdryf. As Ek wel deur Beëlsebul demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle dan uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Wanneer 'n sterk, goed bewapende man sy eie huis bewaak, is sy besittings veilig. Maar as daar iemand aankom wat sterker as hy is, en hom oorrompel, neem so iemand die volle wapenrusting af waarop die sterk man vertrou het, en verdeel die buit. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, sonder om dit te vind. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer vind hy dit uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. ” Terwyl Hy dit sê, het 'n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: “Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!” Maar Hy antwoord: “Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” Toe die skare om Hom saamdrom, het Jesus met hulle begin praat: “Hierdie geslag is 'n slegte geslag. Hulle vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die •Seun van die Mens 'n teken wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met die mense van hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel, want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor, en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is groter as Jona.” “ Niemand steek 'n lamp op en plaas dit dan in 'n versteekte hoekie of onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam ook donker. Pas dus op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam verlig is en daar nie 'n enkele donker plekkie is nie, sal dit heeltemal verlig wees, soos wanneer 'n lamp jou met sy strale verlig.” Tydens Jesus se redevoering het 'n •Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het by sy huis ingegaan en aangeleun om te eet. Die Fariseër was verbaas om te sien dat Jesus Hom nie voor die ete laat was het nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande soorte kruie, maar julle verwaarloos die reg en die liefde vir God. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplekke in die •sinagoges en om op die markpleine begroet te word. Wee julle, want julle is soos ongemerkte grafte waaroor die mense loop sonder om dit te besef.” Een van die wetskenners het Hom geantwoord: “Meester, as u dit sê, beledig u ons ook.” Daarop het Hy gesê: “En ook julle wetskenners, wee julle, want julle belas die mense met ondraaglike vragte, en self raak julle nie met 'n vinger aan die vrag nie. Wee julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. Julle is dus getuies wat die dade van julle voorvaders goedkeur, want hulle het die profete vermoor, en julle bou hulle grafmonumente. Om hierdie rede het die Wysheid van God gesê, ‘Ek sal profete en •apostels na hulle stuur, maar hulle sal sommige doodmaak en vervolg.’ Daarom sal vir die bloed van al die profete wat sedert die grondlegging van die wêreld vergiet is, vergelding van hierdie geslag geëis word – van die bloed van Abel tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die heiligdom om die lewe gebring is. Ja, Ek sê vir julle, dit sal van hierdie geslag geëis word. Wee julle, wetskenners, want julle het die sleutel van kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en diegene wat wou ingaan, het julle verhinder.” Nadat Hy daarvandaan vertrek het, het die skrifkenners en die Fariseërs erg vyandiggesind teenoor Hom geraak, Hom oor baie onderwerpe uitgelok en Hom fyn dopgehou of Hy iets sou sê op grond waarvan hulle Hom kon vastrek. Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. Word vyf mossies nie vir twee assarius verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die •Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word; maar wie teen die Heilige Gees laster, sal nie vergewe word nie. En wanneer hulle julle voor die •sinagoges en die owerhede en die maghebbers bring, moet julle nie bekommerd wees oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê.” Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? ” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “'n Sekere ryk man se plaas het 'n goeie oes opgelewer. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.” Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie 'n stoorkamer of 'n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? As julle nie eers so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? “Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy •koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, 'n onuitputlike skat in die hemel, waar 'n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” “Ek het gekom om 'n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was! Ek het 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. “Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Toe sê Hy vir die skare: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik, ‘Daar kom reën!’ en dit gebeur so. En wanneer die suidewind waai, sê julle, ‘Dit gaan baie warm word!’ en dit gebeur ook. Skynheiliges, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie beslissende tyd te beoordeel nie?” “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie? As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.” Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed •Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. ” Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ” Op die Sabbat het Hy in een van die •sinagoges onderrig gegee. En kyk, daar was 'n vrou wat al agttien jaar lank gely het onder 'n gees wat haar siek gemaak het. Sy was kromgetrek, en kon glad nie regop kom nie. Toe Jesus haar sien, het Hy haar nader geroep en vir haar gesê: “Mevrou, jy is van jou siekte verlos.” Daarna het Hy sy hande op haar gelê, en sy het dadelik regop gekom en God geloof. Maar die leier van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus iemand op die Sabbat gesond gemaak het, en hy het vir die skare gesê: “Daar is ses dae waarop 'n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” Maar die Here het hom geantwoord: “Skynheiliges! Maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy os of sy donkie los van die krip en lei hom uit om te drink nie? En hierdie vrou, 'n dogter van Abraham, vir wie Satan al agttien jaar lank gevange hou, moes sy dan nie op die Sabbat van hierdie boeie verlos word nie?” Toe Hy dit gesê het, het al sy teenstanders beskaamd gestaan, maar die hele skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat deur Hom verrig is. Daarop het Hy gesê: “Waaraan is die •koninkryk van God gelyk, en waarmee sal Ek dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls van die hemel het in sy takke kom nesmaak. ” Hy vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deurgesuur is.” Onderweg na Jerusalem het Hy deur stede en dorpe gereis en die mense geleer. Iemand het vir Hom gevra: “Meneer, is diegene wat verlos word, min?” En Hy het vir hulle gesê: “Beywer julle om by die smal deur in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie. As die huisbaas eers opgestaan en die deur gaan sluit het, en julle staan buite en klop aan die deur en roep, ‘Meneer, maak vir ons oop!’ sal hy julle antwoord, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ Dan sal julle begin sê, ‘Ons het saam met u geëet en gedrink, en u het in ons strate onderrig gegee.’ Maar hy sal vir julle sê, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle almal wat onreg pleeg. ’ Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die •koninkryk van God sien, maar julle uitgewerp word na buite. Mense sal uit die ooste en die weste, die noorde en die suide kom aanleun om te eet in die koninkryk van God. En kyk, wie laaste is, sal eerste wees, en wie eerste is, sal laaste wees.” Juis op dié tydstip het sommige •Fariseërs vir Hom kom sê: “Gaan weg, vertrek hiervandaan, want Herodes wil u doodmaak.” Maar Hy antwoord hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel. Maar Ek moet nog vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat 'n profeet buite Jerusalem omkom nie.’ Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!’ ” Toe Hy op 'n Sabbat na die huis van een van die leiers van die •Fariseërs gegaan het vir 'n maaltyd, het hulle Hom fyn dopgehou. En kyk, reg voor Hom was daar iemand wat aan watersug gely het. Jesus het vir die wetskenners en Fariseërs gevra: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat te genees of nie?” Maar hulle het stilgebly. Toe het Hy die man geneem, hom gesond gemaak en hom laat gaan. Daarop sê Hy vir hulle: “Wie van julle sal, as sy seun of os in 'n put val, hom nie dadelik uithaal nie – selfs al is dit op die Sabbat?” Hierop kon hulle nie antwoord nie. Toe Hy opmerk hoe die genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek, het Hy die volgende gelykenis vir hulle vertel: “ Wanneer jy deur iemand na 'n •bruilofsfees uitgenooi word, moet jy nie op die ereplek gaan sit nie, ingeval iemand van groter aansien as jy deur hom uitgenooi is, en hy wat hom en jou uitgenooi het, dan vir jou kom sê, ‘Maak plek vir hierdie man.’ Dan sal jy met skaamte die verste plek gaan inneem. Nee, wanneer jy uitgenooi word, gaan na die verste plek, sodat die man wat jou uitgenooi het, kan kom en vir jou sê, ‘Vriend, skuif nader!’ Dan sal jy aansien kry by almal wat saam met jou vir ete aanleun. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” Jesus het ook vir die man wat Hom genooi het, gesê: “Wanneer jy 'n ligte ete of 'n groot maaltyd gee, moenie jou vriende of broers of familie of ryk bure nooi, met die doel dat hulle jou weer op hulle beurt uitnooi, en jy dan vergoed word nie. Nee, wanneer jy 'n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes. Dan sal jy gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie; want jy sal beloon word by die opstanding van die •regverdiges. ” Toe een van diegene wat saam aangeleun het om te eet, dit hoor, sê hy vir Hom: “Gelukkig is die een wat aan die maaltyd in die •koninkryk van God sal deelneem. ” Toe sê Jesus vir hom: “'n Man het 'n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Toe dit tyd was vir die feesmaal, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê, ‘Kom, alles is gereed!’ Maar een ná die ander het almal verskonings begin aanbied. Die eerste een het vir hom gesê, ‘Ek het 'n stuk grond gekoop, en dit is noodsaaklik dat ek daarna gaan kyk. Ek vra u, verskoon my tog.’ 'n Ander een het gesê, ‘Ek het vyf paar osse gekoop, en ek gaan hulle uittoets. Ek vra u, verskoon my tog.’ Nog 'n ander een het gesê, ‘Ek is pas getroud, en daarom kan ek nie kom nie.’ Met sy terugkeer het die slaaf hierdie dinge aan sy eienaar gerapporteer. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy slaaf gesê, ‘Gaan dadelik uit in die strate en stegies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ En die slaaf het kom sê, ‘Meneer, die opdrag wat u gegee het, is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die eienaar vir die slaaf, ‘Gaan uit na die paaie en lanings, en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek verseker julle, nie een van daardie mense wat aanvanklik genooi is, sal hulle mond aan my feesmaal sit nie.’ ” Groot skares mense het saam met Hom gereis. Hy het na hulle gedraai en gesê: “ As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot en sê, ‘Hierdie man het begin bou, maar kon nie klaarmaak nie.’ Of watter koning trek op om met 'n ander koning oorlog te voer, en gaan nie eers sit en oorweeg of hy met tienduisend man opgewasse sal wees teen die ander een wat met twintigduisend teen hom optrek nie? Indien nie, stuur hy, terwyl die ander een nog ver is, 'n afvaardiging en vra voorwaardes vir vrede. Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.” “Sout is goed, maar as sout sy smaak verloor, waarmee sal dit weer smaaklik gemaak word? Dit is nie eers geskik vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Laat dié wat ore het om te hoor, luister! ” Al die •tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. Die •Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: “Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig •regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.” “Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie 'n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.’ So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer.” Verder het Hy gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun al sy goed in geld omgesit en na 'n ver land gereis, en daar alles wat hy besit het, deur sy losbandige leefwyse verkwis. Teen die tyd dat hy alles uitgegee het, het daar 'n baie ernstige hongersnood in daardie land uitgebreek, en hy het begin gebrek ly. Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas. Hy het gewens dat hy sy honger kon stil met die peule wat die varke gewoonlik gevreet het, maar niemand het vir hom daarvan gegee nie. “Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou 'n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom 'n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier. “Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en 'n gedans. Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. ‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Hy het briesend kwaad geword en wou nie ingaan nie, maar sy vader het uitgekom en mooi met hom gepraat. Maar hy het vir sy vader gesê, ‘Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit 'n opdrag van u verontagsaam nie, en vir my het u nooit eers 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende kon feesvier nie. Maar toe hierdie seun van u terugkom, wat u besittings op prostitute uitgemors het, slag u vir hom die vetgemaakte kalf!’ Toe sê hy vir hom, ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood, en hy het lewendig geword. Hy was verlore, en is weer gevind!’ ” Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ Hierna het hy vir 'n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met 'n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Die •Fariseërs, wat geldgierig was, het na al hierdie dinge geluister, en smalend oor Hom gepraat. Hy sê toe vir hulle: “Dit is julle wat julleself voor die mense regverdig voordoen, maar God ken julle harte. Want dit wat deur mense hoog aangeskryf word, is 'n gruwel voor God. Tot en met Johannes het die Wet en die Profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer met alle mag daar ingaan. Maar dit is makliker vir die hemel en die aarde om tot niet te gaan as dat een strepie van die Wet wegval. “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk, en hy wat met 'n vrou trou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.” “Daar was 'n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. Voor die ingang van sy huis het 'n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ ‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’ ” Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. Dit is beter vir hom dat 'n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” Toe sê die •apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” En die Here antwoord: “As julle geloof soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het. “Wie van julle sal, as hy 'n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ” Op 'n keer het Jesus op pad na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea gereis. Toe Hy 'n sekere dorpie binnegaan, het tien melaatse mans Hom tegemoet gekom. Hulle het op 'n afstand bly staan en uitgeroep: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Op pad daarheen is hulle gereinig. Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met 'n harde stem geloof. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was 'n Samaritaan. Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” Toe sê Hy vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.” Toe Jesus op 'n keer deur die •Fariseërs gevra is wanneer die •koninkryk van God kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koninkryk van God kom nie met duidelik waarneembare tekens nie. Mense sal nie sê, ‘Kyk, hier is dit!’ of ‘Daar is dit!’ nie, want kyk, die koninkryk van God is in julle midde.” Hy het aan sy dissipels gesê: “Daar kom 'n tyd wanneer julle sal begeer om maar één van die dae van die •Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Dan sal die mense vir julle sê, ‘Kyk daar!’ of ‘Kyk hier!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie. Want soos 'n weerligstraal die hemel van die een kant af tot aan die ander kant verlig, só sal die Seun van die Mens op sy dag verskyn. Maar eers moet Hy baie lyding verduur en deur hierdie geslag verwerp word. Net soos in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die Mens. Hulle het geëet, gedrink, in die huwelik getree en in die huwelik uitgegee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan en die vloed gekom en almal vernietig het. Net so het dit ook in die dae van Lot gegaan – hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou; maar op die dag dat Lot uit Sodom weggetrek het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig. Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die Mens geopenbaar word. Wie op daardie dag op sy dakstoep sal wees, met sy besittings nog in die huis, moenie ondertoe gaan om dit te gaan haal nie. Net so moet die een op die landerye nie terugdraai na wat agter is nie. Onthou Lot se vrou! “ Wie probeer om sy lewe te beveilig, sal dit verloor, maar wie dit verloor, sal dit behou. “Ek sê vir julle: “Daardie nag sal twee mense op een bed wees – die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee vroue sal besig wees om by dieselfde meul te maal – die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word.” Hulle vra toe vir Hom: “Waar, Here?” Hy antwoord hulle: “Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls ook versamel.” Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. Hy het gesê: “Daar was 'n sekere regter in 'n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. Daar was ook 'n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê! Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die •Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?” Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word. ” Hulle het ook kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle die mense berispe. Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk. Toe Jesus sien hoe bedroef die man word, het Hy gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die •koninkryk van God; want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie kan dan gered word?” En Hy antwoord: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” Daarop sê •Petrus: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie – én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.” Hy het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete oor die •Seun van die Mens geskryf is, sal vervul word. Want Hy sal aan die heidene oorgelewer word, Hy sal bespot en beledig word, en daar sal op Hom gespuug word. En nadat hulle Hom gegesel het, sal hulle Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opstaan.” Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Die betekenis van hierdie uitspraak was vir hulle verborge, en hulle het nie begryp wat Hy gesê het nie. Toe Jesus in die omgewing van Jerigo kom, sit daar langs die pad 'n blinde man en bedel. Toe hy die skare hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. Hulle het vir hom gesê dat Jesus, die Nasarener, daar verbyloop. Toe roep hy hardop uit: “Jesus, •Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Die mense wat voor geloop het, het hom berispe dat hy moet stilbly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus het gaan staan en beveel dat hy na Hom gebring word. Toe hy nader kom, vra Jesus hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy het geantwoord: “Here, dat ek kan sien.” Jesus het vir hom gesê: “Sien weer! Jou geloof het jou gered. ” En onmiddellik kon hy sien. Hy het Jesus gevolg en God geprys. Die hele volk wat dit gesien het, het God geloof. Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeus. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man. Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.” Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug. ” Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is 'n seun van Abraham. Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.” Terwyl die mense hierna luister, het Jesus nog 'n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die •koninkryk van God nou skielik sou aanbreek. Hy het gesê: “'n Man van hoë afkoms het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te bekom en weer terug te keer. Hy het tien van sy slawe geroep en aan hulle tien mina gegee en vir hulle gesê, ‘Gaan woeker daarmee, totdat ek terugkeer.’ Sy burgers het hom egter gehaat, en het 'n afvaardiging agter hom aangestuur om te sê, ‘Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons heers nie.’ “By sy terugkeer het hy, nadat hy die koningskap ontvang het, die slawe aan wie hy die geld gegee het, ontbied om uit te vind watter wins hulle gemaak het. Die eerste een het kom sê, ‘Meneer, u mina het 'n wins van tien mina opgelewer.’ Hy het hom geantwoord, ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede. ’ Toe het die tweede slaaf gekom en gesê, ‘Meneer, u mina het vyf mina opgelewer.’ Vir hierdie man het hy gesê, ‘Jy moet vyf stede bestuur.’ Toe het die derde een gekom en gesê, ‘Meneer, kyk, hier is u mina, wat ek in 'n sweetdoek weggebêre het. Ek was bang vir u, omdat u 'n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.’ Toe sê die man vir hom, ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel, jou slegte slaaf! Jy het geweet dat ek 'n streng man is, wat invorder wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy nie my geld by die bank belê nie? Dan sou ek wanneer ek terugkom, dit met rente kon kry.’ Hy beveel toe die omstanders, ‘Vat die mina by hom weg en gee dit vir die een wat tien mina het.’ Maar hulle sê vir hom, ‘Meneer, hy het dan al tien mina!’ ‘Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. En daardie vyande van my wat nie wou gehad het dat ek koning oor hulle moes wees nie, bring hulle hierheen en maak hulle hier voor my dood.’ ” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem. Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste! ” Sommige van die •Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.” Hy het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars begin uitjaag. Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed wees’. Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak! ” Hy het daagliks op die tempelterrein onderrig gegee. Die leierpriesters, die skrifkenners en die volksleiers wou Hom om die lewe bring, maar hulle kon nie 'n manier vind om dit te doen nie, omdat die hele volk aan sy lippe gehang het. Op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het, het die leierpriesters en skrifkenners saam met die familiehoofde nader gestaan en vir Hom gevra: “Sê vir ons, op watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het aan jou hierdie gesag gegee?” Hy het geantwoord: “Ek sal julle ook 'n vraag vra. Sê My: Was die doop van Johannes van die hemel, of van mense?” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel,’ sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê, ‘van mense,’ sal die hele volk ons stenig, omdat hulle daarvan oortuig is dat Johannes 'n profeet is.” Hulle antwoord toe dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.” Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.” Die skrifkenners en die leierpriesters wou Hom onmiddellik gevange neem, omdat hulle besef het dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle was egter bang vir die volk. Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly. Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie. Jesus het hulle gevra: “Hoe kan daar gesê word dat die Christus die •Seun van Dawid is? Dawid sê dan self in die Psalms, “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Dawid noem Hom dus ‘Here’. Hoe kan Hy dan sy seun wees?” Terwyl die hele volk luister, het Hy vir sy dissipels gesê: “Wees op julle hoede vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, en is lief daarvoor om op die markpleine begroet te word en die voorste sitplekke in die •sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.” Jesus het opgekyk en gesien hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi. Hy sien toe ook hoe 'n arm weduwee twee lepton ingooi, en sê: “Waarlik, Ek sê vir julle: Hierdie weduwee, wat brandarm is, het meer ingegooi as hulle almal. Want hulle het almal uit hulle oorvloed by die bydraes ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: “Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op 'n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.” Verder het Hy ook vir hulle gesê: “Een nasie sal teen 'n ander nasie optrek, en een koninkryk teen 'n ander koninkryk. Daar sal hewige aardbewings wees, en op een plek ná die ander sal daar hongersnood en epidemies uitbreek. Daar sal groot en skrikwekkende tekens uit die hemel kom. Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die •sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam. Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om te getuig. Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie. Julle sal selfs deur julle ouers, broers, familie en vriende uitgelewer word, en hulle sal sommige van julle doodmaak. Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel is, moet julle weet dat haar verwoesting naby is. Dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en hulle wat binne die stad self is, moet uitgaan, en hulle wat op die platteland is, moet die stad nie binnegaan nie; want daardie dae is dae van vergelding, sodat alles wat geskryf is, vervul sal word. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed, want daar sal groot nood in die land wees en straf vir hierdie volk. Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. ” “Dan sal daar tekens wees in die son en die maan en die sterre, en op die aarde sal die nasies beangs en verward wees oor die gedreun en hoë golwe van die see. Mense sal flou val van vrees en vermoedens oor wat die wêreld gaan tref, want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle ‘die •Seun van die Mens op 'n wolk sien kom’ met krag en groot heerlikheid. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan op en lig julle koppe, want julle bevryding is naby. ” Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die •koninkryk van God naby is. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie. “Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap soos 'n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Wees te alle tye waaksaam, en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die •Seun van die Mens te kan staan. ” Jesus het bedags op die tempelterrein onderrig gegee, maar snags het Hy uitgegaan om op die Olyfberg te oornag. En die hele volk het vroeg opgestaan om op die tempelterrein na Hom te gaan luister. Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood, bekend as die Pasga. Die leierpriesters en die skrifkenners het bly soek na 'n geskikte manier om Hom dood te maak, omdat hulle bang was vir die volk. Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is, een van die twaalf, ingevaar. Hy het weggegaan en met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag onderhandel oor hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. Hulle was bly, en het afgespreek om hom geld te gee. Hy het ingestem, en aanhou soek na 'n gepaste geleentheid om Hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare. Die dag van die Ongesuurde Brood, waarop die Pasgalam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir •Petrus en Johannes, met die woorde: “Gaan berei vir ons die Pasga voor, sodat ons dit kan eet.” Hulle het vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons voorbereidings tref?” En Hy antwoord hulle: “Kyk, sodra julle die stad binnegaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle tegemoetkom. Volg hom na die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra u: “Waar is die gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?” ’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig is. Daar moet julle voorbereidings tref.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel. Want met die •Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. “Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. Ek bemaak aan julle 'n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel. ” “Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie. ” Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter 'n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.” Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ” Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ” Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. •Petrus het op 'n afstand gevolg. Hulle het 'n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. Toe 'n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 'n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” Ná ongeveer 'n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg. Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. En as Ek 'n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. Maar van nou af sal ‘die •Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige. ’ ” Toe vra hulle almal: “Is jy dus die •Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!” Toe het die hele menigte opgestaan en Hom na •Pilatus gelei. Hulle het Hom begin aankla en gesê: “Ons het vasgestel dat hierdie man ons volk op 'n dwaalweg lei, en hulle daarvan weerhou om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy van homself gesê het hy is die Gesalfde – 'n koning.” Pilatus vra toe vir Hom: “Is u die koning van die Jode?” En Hy antwoord: “U sê dit.” Daarop sê Pilatus aan die leierpriesters en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie mens nie.” Maar hulle het aangedring: “Hy sweep die volk dwarsdeur die hele Judea op met sy lering, vandat hy in Galilea begin het tot hier.” Toe •Pilatus dit hoor, vra hy of die man 'n Galileër is; en toe hy besef dat Hy afkomstig is uit die magsgebied van Herodes, het hy Hom na Herodes gestuur, wat self juis in daardie tyd in Jerusalem was. Toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy wou Hom al 'n geruime tyd te siene kry, omdat hy van Hom gehoor het en gehoop het om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen word. Hy het Hom uitvoerig ondervra, maar Jesus het hom glad nie geantwoord nie. Die leierpriesters en die skrifkenners het daar gestaan en Hom hewig beskuldig. Herodes, en ook sy soldate, het Hom met minagting behandel en Hom bespot. Hulle het vir Hom 'n deftige kleed aangetrek en Hom na Pilatus teruggestuur. Juis op dié dag het Herodes en Pilatus, wat vroeër vyandiggesind teenoor mekaar was, vriende geword. •Pilatus het die leierpriesters, die volksleiers en die volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk op 'n dwaalweg lei. En kyk, ek het hom in julle teenwoordigheid verhoor, en kon hierdie man nie skuldig bevind op enige van die aanklagte wat julle teen hom inbring nie. En Herodes kon ook nie, want hy het hom na ons teruggestuur. Hy het inderdaad niks gedoen wat die dood verdien nie. Ek gaan hom dus laat gesel en dan vrylaat. ” Maar hulle het almal saam geskreeu: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons vry!” Hy is in die tronk gegooi as gevolg van 'n oproer in die stad, en vir moord. Pilatus het hulle weer aangespreek, omdat hy Jesus wou vrylaat. Maar hulle het aanhou skreeu: “Kruisig, kruisig hom!” Vir 'n derde maal het hy vir hulle gesê: “Watter kwaad het hy dan gedoen? Ek het niks gevind waarvoor hy die dood verdien nie. Ek gaan hom dus laat gesel en dan vrylaat.” Maar hulle het luidkeels aangehou om te eis dat Hy gekruisig word, en hulle geskreeu het die oorhand gekry. Pilatus het daarom besluit om aan hulle eis te voldoen. Hy het die man laat gaan wat vir oproer en moord in die tronk gegooi is, die een vir wie se vrylating hulle gevra het. Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer. Toe die soldate Jesus weglei, het hulle 'n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie 'n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’ “Dan sal hulle vir die berge begin sê, ‘Val op ons!’ en vir die heuwels, ‘Bedek ons!’ “Want as hulle dit aan die groen hout doen, wat sal nie met die droë hout gebeur nie?” Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” Bokant Hom was daar ook 'n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! ” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister, en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. En kyk, daar was ook 'n man met die naam Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en •regverdige man. Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die •koninkryk van God. Hy het na •Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in 'n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf. Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die •Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” Hulle het toe sy woorde onthou en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel. Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en 'n paar ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die •apostels vertel; maar vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie. •Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het. En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? ” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het sterk by Hom aangedring: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hy het toe ingedraai om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle vir ete aangeleun het, het Hy brood geneem, die seëngebed uitgespreek, dit gebreek en vir hulle gegee. Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?” Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het. Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die •Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word. ” Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, en getuies van hierdie dinge wees. En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.” Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys. In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore. En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ” Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak. En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!” Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?” Hy antwoord toe, “Ek is ‘die stem van een wat uitroep in die woestyn: “Maak die pad van die Here reguit!” ’ – “soos die profeet Jesaja gesê het.” Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs, en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur. Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus. Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!” Filippus was afkomstig van Betsaida, die tuisdorp van Andreas en Petrus. Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.” En Natanael vra hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Filippus sê vir hom: “Kom kyk!” Jesus het Natanael na Hom sien aankom, en sê toe van hom: “Kyk, hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael vra Hom: “Waarvandaan ken U my?” Jesus het hom geantwoord: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” Toe antwoord Natanael Hom: “Rabbi, U is die •Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus antwoord hom: “Glo jy omdat Ek jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge sien.” En Hy sê vir hom: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die •Seun van die Mens.” Op die derde dag was daar 'n •bruilofsfees by Kana in Galilea, en Jesus se moeder was daar. Ook Jesus en sy dissipels is na die bruilofsfees genooi. Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” Maar Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom pla u My? My uur het nog nie aangebreek nie. ” Sy moeder sê vir die dienaars: “Doen wat Hy ook al vir julle sê.” Daar het, ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode, ses klipkanne gestaan wat elk tussen twee en drie metretes kon hou. Jesus sê toe vir hulle: “Maak die kanne vol water.” En hulle het dit tot bo toe volgemaak. Daarop sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en neem dit vir die hoofkelner.” Hulle het dit toe geneem. Toe die hoofkelner die water proe wat wyn geword het – hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het – roep hy die bruidegom en sê vir hom: “'n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” Dit het Jesus by Kana in Galilea gedoen, die begin van sy tekens. Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in Hom geglo. Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum afgegaan, maar nie baie lank daar gebly nie. Die Pasga van die Jode was op hande, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. Op die tempelterrein het Hy verkopers van beeste, skape en duiwe aangetref, en ook die geldwisselaars wat daar sit. Daarop het Hy 'n sweep van toue gemaak en almal van die tempelterrein weggejaag, ook die skape en die beeste, en die munte van die geldwisselaars het Hy uitgegooi en die tafels omgekeer. Vir dié wat duiwe verkoop, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Hou op om die huis van my Vader 'n huis te maak waar handel gedryf word!” Sy dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die hartstog vir u huis sal My verteer.” Die Jode vra Hom toe: “Met watter teken kan jy vir ons bewys dat jy hierdie dinge doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.” Daarop het die Jode gesê: “Ses-en-veertig jaar gelede is daar aan hierdie tempel begin bou, en jy sal dit binne drie dae opbou?” Maar Hy het van die tempel van sy liggaam gepraat. Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woord wat Jesus gespreek het, geglo. Toe Jesus tydens die Pasga in Jerusalem was, het talle die tekens gesien wat Hy doen en in sy Naam geglo. Maar Jesus het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy alle mense ken. Hy het nie nodig gehad dat iemand van die mens getuig nie; want Hy het self geweet wat daar in die mens is. Daar was 'n man uit die geledere van die •Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie. ” Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan 'n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie. Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie? Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie! As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die •Seun van die Mens. En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.” Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie. En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie. Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is. Hierna het Jesus en sy dissipels na die landstreek Judea gegaan en daar 'n rukkie saam met hulle vertoef, en mense laat doop. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, omdat daar baie water daar was, en mense gekom het om hulle te laat doop. Johannes was immers nog nie in die tronk gegooi nie. Daar het toe 'n woordestryd tussen sommige van Johannes se dissipels en 'n Jood oor die seremoniële reiniging ontstaan. Hulle kom toe na Johannes en sê vir hom: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, die Een van wie u getuig het – kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.” Johannes het geantwoord: “'n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle kan self getuig dat ek gesê het dat ek nie die Christus is nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Die een wat die bruid het, is die bruidegom, maar die vriend van die bruidegom wat daar staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom. Daarom is hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, en ek minder. “Die Een wat van bo af kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het plegtig bevestig dat God waaragtig is. Want Hy vir wie God gestuur het, spreek die woorde van God; God skenk immers die Gees nie in geringe mate nie. Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom. ” Toe Jesus verneem dat die •Fariseërs gehoor het Hy werf en doop meer dissipels as Johannes – hoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels – het Hy Judea verlaat en weer na Galilea vertrek. Hy moes egter deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie dors word en hierheen hoef te kom om te skep nie.” Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” Jesus sê vir haar: “Jy sê tereg, ‘'n Man het ek nie,’ want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê, ‘Jerusalem is die plek waar aanbid moet word.’ ” Jesus sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ” Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.” Juis op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom, en hulle was verbaas, omdat Hy besig was om met 'n vrou te praat. Tog het niemand gevra: “Wat wil U van haar hê?” of “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik daar gelos, na die dorp gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? ” Hulle het uit die dorp gegaan en was op pad na Hom toe. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: “Rabbi, eet iets.” Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels vra toe onder mekaar: “Iemand het tog nie vir Hom iets te ete gebring nie?” En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle dan nie, ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes’ nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes. Hy wat oes, ontvang sy loon en samel die oes in vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees. Want in hierdie opsig is die gesegde waar, ‘Die een saai, en die ander maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waarvoor julle nie geswoeg het nie. Ander het geswoeg en julle het voordeel getrek uit hulle harde arbeid.” Baie van die Samaritane uit daardie dorp het in Hom geglo op grond van die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly, en Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. ” Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea vertrek. Hy het immers self getuig dat 'n profeet nie in sy eie vaderland eer ontvang nie. Toe Hy in Galilea aankom, het die Galileërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy gedurende die feesviering in Jerusalem gedoen het. Hulle het immers self ook die fees bygewoon. Hy het toe weer vertrek na Kana in Galilea, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere koninklike amptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus van Judea af na Galilea gekom het, het hy na Hom gegaan en gesmeek dat Hy moet afkom en sy seun gesond maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” Die koninklike amptenaar sê vir Hom: “Meneer, kom tog, voordat my kindjie sterf.” Jesus sê vir hom: “Gaan, jou seun leef.” Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. En terwyl hy nog op pad was, het sy dienaars hom tegemoet gekom en vertel dat sy kind leef. Hy het toe by hulle navraag gedoen oor wanneer hy beter begin word het. Hulle sê toe vir hom: “Gister, teen die sewende uur, het die koors hom verlaat.” Die vader het toe besef dat dit op daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun leef.” En hy en sy hele huishouding het tot geloof gekom. Dit was die tweede teken wat Jesus gedoen het ná sy vertrek van Judea na Galilea. Hierna was daar 'n Joodse fees, en Jesus het na Jerusalem opgegaan. By die Skaappoort in Jerusalem is daar 'n bad, in Hebreeus Betsata genoem, met vyf pilaargange. In die pilaargange het 'n groot aantal siekes gelê: blindes, kreupeles, verlamdes. Daar was 'n man wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom daar sien lê, bewus daarvan dat hy reeds lank siek is, vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?” Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog besig is om nader te gaan, gaan iemand anders voor my in.” Jesus sê vir hom: “Staan op, tel jou slaapmat op en loop.” En dadelik het die man gesond geword, sy slaapmat opgetel en begin loop. Daardie dag was egter 'n Sabbat. Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is Sabbat – dit is nie vir jou toelaatbaar om jou slaapmat te dra nie.” Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê, ‘Tel jou slaapmat op en loop.’ ” Hulle het hom gevra: “Wie is die man wat vir jou gesê het, ‘Tel jou slaapmat op en loop’?” Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggeglip, aangesien daar op die plek 'n skare byeen was. Hierna kry Jesus hom op die tempelterrein en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond; moenie langer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Die man het weggegaan en die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. Hieroor wou die Jode Hom vervolg, omdat Hy dit op 'n Sabbat gedoen het. Maar Jesus het hulle geantwoord: “My Vader is tot nou toe aan die werk, en Ek is ook aan die werk.” Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het. Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom 'n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling. “Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is •regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. ” “ As Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie waar nie. Daar is 'n ander Een wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis waar is wat Hy oor My aflê. Julle het gesante na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig. Ek aanvaar egter nie die getuienis wat van 'n mens afkomstig is nie, maar Ek sê hierdie dinge sodat julle verlos kan word. Hy was die lamp wat brand en lig gee, en julle was gretig om julle vir 'n tydjie in sy lig te verbly. Maar Ek het 'n getuienis gewigtiger as dié van Johannes: Die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, ja, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie. “ Ek aanvaar nie verering deur mense nie, maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. Ek het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea, oftewel Tiberias, vertrek. 'n Groot skare het agter Hom aangekom, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy vir die siekes verrig het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en daar met sy dissipels gaan sit. Dit was kort voor die Joodse fees van die Pasga. Toe Jesus opkyk en sien dat daar 'n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Filippus: “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet?” Hy het dit egter net gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen 'n stukkie te laat kry nie.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon •Petrus, sê vir Hom: “Hier is 'n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe het die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as hulle wou hê. En toe almal versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgebly het, sodat niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak, en twaalf mandjies volgemaak met die brokstukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat hulle klaar geëet het. Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. ” Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen. Toe dit aand geword het, het sy dissipels na die see afgegaan; en nadat hulle in die boot geklim het, het hulle na Kapernaum aan die oorkant van die see gevaar. Dit was reeds donker, maar Jesus het nog steeds nie by hulle uitgekom nie. En die see het onstuimig geword, omdat 'n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf-en-twintig tot dertig stadion ver geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en tot naby die boot kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Toe wou hulle Hom in die boot saamneem, maar skielik was die boot aan land by die plek waarheen hulle besig was om te vaar. Die volgende dag het die skare wat oorkant die see bly staan het, agtergekom dat daar, behalwe dié een, geen ander skuit was nie, en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het egter vanaf Tiberias bote aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het nadat die Here die seëngebed uitgespreek het. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie, en ook nie sy dissipels nie, het hulle self in die skuite geklim en na Kapernaum gevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom aan die oorkant van die see aantref, het hulle vir Hom gevra: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle soek My, nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die •Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Hulle het Hom gevra: “Wat moet ons doen sodat ons die werke kan verrig wat God wil hê?” En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter teken sal u doen sodat ons kan sien en u glo? Wat gaan u doen? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ ” Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie; want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie 'n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan. ” Toe het die Jode oor Hom gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” En hulle het gesê: “Is hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan hy nou sê, ‘Ek het uit die hemel neergedaal?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Hou op om onder mekaar te mor. Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. In die Profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie – net die Een wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.” Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.” Dit het Hy in 'n •sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het. Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle die •Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.” Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” Simon •Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. En ons glo en weet dat U die •Heilige van God is. ” Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was. Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. En die Huttefees van die Jode was op hande. Sy broers het toe vir Hom gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat jou dissipels ook die dade wat jy verrig, kan sien. Want niemand doen iets in die geheim en wil dan tog in die openbaar bekend wees nie. Indien jy hierdie dinge wil doen, maak dan jouself aan die wêreld bekend.” Trouens, selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie, maar julle tyd is altyd op hande. Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy in Galilea gebly. Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim. Die Jode het toe op die fees na Hom gesoek en gesê: “Waar is daardie man?” En daar was 'n groot geredekawel oor Hom onder die skare. Sommige het gesê: “Hy is 'n goeie mens.” Ander het weer gesê: “Nee, maar hy mislei die skare.” Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode. Toe die fees reeds halfpad verby was, het Jesus na die tempelterrein opgegaan en begin onderrig gee. Die Jode was verwonderd en het gesê: “Hoe ken hy die Skrifte sonder dat hy dit bestudeer het?” Jesus antwoord hulle toe: “Wat Ek leer, is nie my eie nie, maar kom van Hom wat My gestuur het. As iemand bereid is om sy wil te doen, sal hy, wat hierdie leer betref, weet of dit van God is en of Ek uit my eie praat. Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het – Hy is geloofwaardig en daar is geen onreg in Hom nie. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? En nie een van julle voer die wet uit nie. Waarom probeer julle My dan doodmaak? ” Die skare het geantwoord: “Jy het 'n demoon! Wie probeer jou doodmaak?” Jesus het hulle geantwoord: “Een daad het Ek gedoen, en julle is almal verbaas. Omdat Moses vir julle die besnydenis gegee het – nie dat dit van Moses kom nie, maar van die vaders – besny julle iemand ook op die Sabbat. As iemand op die Sabbat die besnydenis ontvang, sodat die •Wet van Moses nie verbreek word nie, is julle dan vir My kwaad omdat Ek op die Sabbat 'n mens in sy geheel gesond gemaak het? Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig. ” Daarop het sommige van Jerusalem se inwoners gesê: “Is hy nie die een wat hulle wil doodmaak nie? Kyk nou, hy praat openlik, en hulle sê niks teen hom nie. Die volksleiers het tog nie regtig ingesien dat hy die Christus is nie? Hierdie man – ons weet tog waar hy vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, weet niemand waarvandaan Hy is nie.” Jesus het toe, terwyl Hy op die tempelterrein onderrig gee, uitgeroep en gesê: “Julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, vir wie julle nie ken nie, is geloofwaardig. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” Hulle wou Hom arresteer; tog het niemand 'n hand op Hom gelê nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. Maar baie uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die •Fariseërs het gehoor dat die skare hierdie dinge onderlangs oor Hom fluister, en hulle en die leierpriesters het die tempelwag gestuur om Hom te arresteer. Daarop het Jesus gesê: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie, en waar Ek is, kan julle nie kom nie. ” Toe het die Jode onder mekaar gesê: “Waarheen is hy van plan om te gaan dat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Diaspora onder die Grieke te gaan en die Grieke te leer nie? Wat beteken hierdie uitspraak wat hy gemaak het, ‘Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?’ ” En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.” Ander het gesê: “Hy is die Christus.” Nog ander het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif nie gesê die Christus is uit die nageslag van Dawid en kom uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid nie?” Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom. En sommige van hulle wou Hom arresteer, maar niemand het 'n hand op Hom gelê nie. Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ” Elkeen het na sy eie huis teruggekeer, maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifkenners en die •Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel staan. Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg. In die •wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip na haar gooi.” Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan – net Hy het oorgebly, en die vrou daar in die middel. Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy antwoord: “Niemand nie, meneer. ” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. ” Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, en in julle sonde sterf. Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Hy gaan homself tog nie doodmaak nie – omdat hy sê, ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?’ ” Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier benede; Ek is van daarbo. Julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” Hulle het toe vir Hom gevra: “Wie is u?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Ek van die begin af vir julle gesê? Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld. ” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Wanneer julle die •Seun van die Mens verhoog het, dan sal julle begryp dat Ek Is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar hierdie dinge sê net soos die Vader My geleer het. En Hy wat My gestuur het, is met My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie – hoe kan u sê, ‘Julle sal vry word?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees. Ek weet dat julle die nageslag van Abraham is, maar julle probeer My doodmaak, omdat julle geen ruimte vir my woord in julle laat nie. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het, maar julle tree op volgens dit wat julle by julle vader gehoor het.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons vader is Abraham.” Jesus sê vir hulle: “As julle werklik kinders van Abraham was, sou julle die dade van Abraham gedoen het. Maar nou probeer julle My doodmaak – vir My, wat die waarheid wat Ek by God gehoor het aan julle verkondig. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die dade van júlle vader.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Ons is nie uit hoerery gebore nie. Ons het een Vader, naamlik God. ” Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is. Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie van julle kan sonde by My uitwys? As Ek die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.” Die Jode het Hom geantwoord: “Het ons nie met reg gesê dat jy 'n Samaritaan is en 'n demoon het nie? ” Daarop sê Jesus: “Ek het nie 'n demoon nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. Ek is nie op soek na eie verheerliking nie; daar is Een wat dit wel vereis, en Hy beslis daaroor. Amen, amen, Ek sê vir julle: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie sien nie.” Die Jode het toe vir Hom gesê: “Nou weet ons vir seker dat jy 'n demoon het. Abraham het gesterf en ook die profete, en tog sê jy, ‘As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie smaak nie. ’ Jy is tog nie belangriker as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterf. Vir wie gee jy jou uit?” Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, Hy van wie julle sê, ‘Hy is ons God.’ Julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom. En as Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek bewaar sy woord. Abraham, julle vader, het daaroor gejubel dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie vyftig jaar oud nie, en jy het Abraham gesien?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle, Ek Is al van voordat Abraham gebore is. ” Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus het hulle ontduik en die tempelterrein verlaat. En in die verbygaan het Jesus 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? ” Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en modder van die speeksel gemaak, die modder aan sy oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam” – wat, as dit vertaal word, ‘gestuurde’ beteken. Hy het toe gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Die bure en die mense wat hom voorheen gesien het toe hy 'n bedelaar was, sê toe: “Is dit tog nie hy wat gesit en bedel het nie?” Ander het gesê: “Dit is hy!” Nog ander het gesê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Maar hy het gesê: “Dit ís ek!” Hulle vra hom toe: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Hy antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê, ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het toe gegaan en my gewas, en ek het begin sien.” Hulle het hom gevra: “Waar is hy nou?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Hulle neem toe die man wat voorheen blind was na die •Fariseërs. Die dag waarop Jesus die modder gemaak en sy oë oopgemaak het, was 'n Sabbat. Die Fariseërs het hom toe weer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het modder op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.” Sommige van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie. ” Ander het egter gesê: “Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen?” En hulle was verdeeld. Hulle sê toe weer vir die blinde man: “Wat sê jý van hom, aangesien hy jou oë oopgemaak het?” En hy antwoord: “Hy is 'n profeet.” Die Jode het egter nie geglo dat hy blind was en begin sien het nie – totdat hulle die man wat begin sien het, se ouers geroep het en vir hulle gevra het: “Is hierdie man julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” Sy ouers antwoord toe: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is. Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Vra hom – hy is oud genoeg; hy sal vir homself praat.” Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het naamlik reeds ooreengekom dat as iemand Hom openlik as die Christus sou bely, hy uit die •sinagoge geban sou word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg – vra hom.” Hulle het toe die man wat blind was 'n tweede keer laat roep en vir hom gesê: “Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.” Hy het toe geantwoord: “Of hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek, dat ek blind was, en nou sien ek.” Hulle het toe vir hom gesê: “Wat het hy met jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy antwoord hulle: “Ek het reeds vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Wat wil julle weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” Hulle het hom toe uitgeskel en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie. ” Die man het hulle geantwoord: “Wel, dit is verbasend! Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, en tog het hy my oë oopgemaak. Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. Van die begin van die wêreld af het niemand nog ooit daarvan gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore persoon oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het hom geantwoord: “Jy is heeltemal in sonde gebore, en probeer jy ons leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die •Seun van die Mens?” Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy.” Toe sê hy: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. En Jesus het gesê: “Ter wille van 'n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word.” Van die •Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is tog nie ook blindes nie?” Jesus het vir hulle gesê: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle, ‘Ons sien.’ Daarom bly julle in julle sonde.” “Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim – daardie man is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die hek ingaan, is 'n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie. Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie 'n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – omdat die man 'n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang. ” Oor hierdie woorde het daar toe weer verdeeldheid onder die Jode ontstaan. Baie van hulle het gesê: “Hy het 'n demoon en is kranksinnig; waarom luister julle na hom?” Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie van iemand wat van 'n demoon besete is nie. 'n Demoon kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?” In daardie tyd het die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, en Jesus het op die tempelterrein rondbeweeg, in die Pilaargang van Salomo. Die Jode het toe om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit openlik vir ons. ” Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus het hulle geantwoord: “Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle My stenig?” Die Jode het Hom geantwoord: “Dit is nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor godslastering, en omdat jy, wat net 'n mens is, jouself God maak. ” Jesus het hulle geantwoord: “Staan daar nie in julle Wet geskryf, ‘Ek het gesê julle is gode’ nie? As Hy hulle tot wie die woord van God gekom het, gode genoem het – en die Skrif kan nie verbreek word nie – hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die •Seun van God’? As Ek nie die dade van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie. Maar as Ek dit doen en julle My tog nie glo nie, glo dan my dade, sodat julle kan besef en steeds weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is. ” Hulle het toe weer probeer om Hom te arresteer, maar Hy het uit hulle hande ontglip. Daarop het Hy weer teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes tevore gedoop het, en daar vertoef. En baie het na Hom gekom; hulle het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor Hom gesê het, is waar. ” En talle het daar in Hom begin glo. Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf. ” Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die •Seun van God, Hy wat na die wêreld kom. ” En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. Jesus het nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Martha Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die •Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: “Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.” En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle verstaan niks nie. Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.” En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf – en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. Van daardie dag af het hulle saam beraadslaag om Hom dood te maak. Daarom het Jesus nie meer openlik onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan vertrek na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. En daar het Hy saam met sy dissipels vertoef. Die Joodse Pasga was naby, en baie mense het voor die Pasga van die platteland na Jerusalem opgegaan om hulleself te reinig. Hulle was op die uitkyk vir Jesus; en waar hulle op die tempelterrein gestaan het, het hulle vir mekaar gesê: “Wat dink julle? Dat Hy glad nie na die fees sal kom nie?” Die leierpriesters en die Fariseërs het reeds opdrag gegee dat as enigiemand weet waar Jesus is, hy dit moes rapporteer, sodat hulle Hom kon arresteer. Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. Daar het hulle vir Hom toe 'n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria 'n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: “Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy 'n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.” 'n Groot skare Jode het verneem dat Jesus daar was, en hulle het gekom, nie ter wille van Jesus alleen nie, maar sodat hulle ook vir Lasarus kon sien wat Hy uit die dood opgewek het. En die leierpriesters het planne beraam om Lasarus ook dood te maak, omdat deur hom baie van die Jode oorgeloop en in Jesus geglo het. Die volgende dag het die groot skare wat vir die fees gekom het, en wat gehoor het dat Jesus na Jerusalem kom, palmtakke gevat en Hom tegemoetgegaan en aanhoudend uitgeroep, “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” en: “Die Koning van Israel!” En Jesus het 'n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan: “Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom, Hy sit op 'n donkievul.” Hierdie dinge het sy dissipels eers nie verstaan nie, maar toe Jesus verheerlik is, het hulle onthou dat hierdie dinge oor Hom geskryf staan, en dat hulle dit vir Hom gedoen het. Die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het daarvan getuig. Die rede waarom die skare Hom tegemoetgegaan het, was omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het. Daarop het die •Fariseërs vir mekaar gesê: “Sien julle dat julle niks bereik nie! Kyk, die hele wêreld loop agter hom aan! ” Daar was 'n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien. ” Filippus het dit toe vir Andreas gaan vertel, en toe gaan sê Andreas en Filippus dit weer vir Jesus. Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die •Seun van die Mens verheerlik moet word. Amen, amen, Ek sê vir julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. “Nou is my siel ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom! Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf. Die skare het Hom toe geantwoord: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus vir ewig bly, en hoe sê u dat die •Seun van die Mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die Mens?” Jesus het toe vir hulle gesê: “Nog 'n kort tydjie is die lig by julle. Terwyl julle die lig het, leef daarvolgens, sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis leef, weet nie waarheen hy gaan nie. Terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees. ” Toe Jesus dit gesê het, het Hy weggegaan en Hom van hulle onttrek. Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie, sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word: “Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar?” Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: “Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai, en Ek hulle genees nie.” Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. Nogtans het ook baie van hulle leiers in Hom begin glo, maar vanweë die •Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die •sinagoge geban sou word nie. Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. Jesus het uitgeroep en gesê: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het! En wie My sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het as 'n lig na die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. En as iemand my woorde hoor en dit nie bewaar nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het immers nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het self vir My 'n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek moet verkondig. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe is. Wat Ek dus sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het. ” Voor die Fees van die Pasga het Jesus reeds geweet dat sy uur aangebreek het dat Hy van hierdie wêreld na die Vader sou oorgaan. Daarom, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde. Gedurende die aandete het die Duiwel dit reeds in die hart van Judas, seun van Simon Iskariot, gelê om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het, en dat Hy van God gekom het en weer na God terugkeer. Daarom het Hy van die ete opgestaan, sy boklere uitgetrek, 'n linnedoek geneem en dit om Hom vasgebind. Toe gooi Hy water in die waskom en begin om die voete van die dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. Toe Hy by Simon •Petrus kom, sê dié vir Hom: “Here, gaan U my voete was?” Jesus het hom geantwoord: “Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar hierna sal jy verstaan. ” Petrus sê toe vir Hom: “U sal beslis nie my voete was nie – tot in ewigheid nie!” Jesus het hom geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Toe sê Simon Petrus vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.” Maar Jesus sê vir hom: “Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.” Want Jesus het geweet wie Hom sou verraai, en daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Toe Hy hulle voete klaar gewas het en weer sy boklere aangetrek en aangeleun het om te eet, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem my Meester en Here, en julle sê dit tereg, want Ek is dit. As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het immers vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos wat Ek gemaak het. Amen, amen, Ek sê vir julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen. Ek sê dit nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, ‘Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig.’ Ek sê dit nou reeds vir julle, voor dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo dat Ek Is. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie iemand wat Ek stuur ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. ” Nadat Jesus dit gesê het, was Hy diep ontroerd, en het Hy getuig en gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker van wie Hy praat. Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun. Simon •Petrus het vir hom geknik om uit te vind wie dit sou kon wees van wie Jesus praat. Hy het toe teruggeleun teen Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?” Jesus het hom geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood sal indoop en aangee.” Toe Hy die stukkie brood ingedoop het, het Hy dit geneem en aan Judas, seun van Simon Iskariot, gegee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen.” Niemand van dié wat daar aangeleun het om te eet, het verstaan waarom Hy dit aan Judas gesê het nie. Omdat Judas die geldbeurs gedra het, het sommige gedink dat Jesus aan hom gesê het: “Gaan koop wat ons vir die fees nodig het,” of dat hy iets aan die armes moes gee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy onmiddellik buitentoe gegaan. En dit was nag. Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou is die •Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik, en Hy sal Hom dadelik verheerlik. My kinders, Ek is nog net 'n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie. Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” Simon •Petrus vra Hom toe: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg.” Maar Petrus sê vir Hom: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.” Toe antwoord Jesus: “Sal jy jou lewe vir My aflê? Amen, amen, Ek sê vir jou: Die haan sal beslis nie kraai voordat jy My drie keer verloën het nie.” “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Jesus sê vir hom: “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” “ As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie? ” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het. “Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is. En nou het Ek dit vir julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo. Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. Maar sodat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen soos wat die Vader aan My opgedra het, staan op, laat ons hiervandaan weggaan! ” “Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat 'n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.” “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam. Hulle sal julle al hierdie dinge aandoen, ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het, nie ken nie. As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie sonde gehad het nie; maar nou het hulle nie 'n verskoning vir hulle sonde nie. Wie My haat, haat ook my Vader. As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie sonde gehad het nie. Nou het hulle dit egter gesien, en tog haat hulle My én my Vader. Maar die uitspraak wat in hulle wet opgeteken staan, moet in vervulling gaan, ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’ “Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is. “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. Hulle sal julle uit die •sinagoges ban. Daar kom 'n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.” “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van •geregtigheid en van oordeel: “Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. “ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.” “ Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien.” Van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit wat Hy vir ons sê, ‘Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien’ en, ‘Ek gaan na die Vader’?” Hulle het daarom bly sê: “Wat is hierdie kort tydjie waarvan Hy praat? Ons verstaan nie wat Hy sê nie.” Jesus het geweet dat hulle dit vir Hom wou vra, en sê toe vir hulle: “Is dit waaroor julle mekaar uitvra, omdat Ek gesê het: Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien? Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 'n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat 'n mens in die wêreld gekom het. Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer vra nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wat julle die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. ” “Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ” Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het. “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik. Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees. Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. Maar nou kom Ek na U. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. •Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondal vertrek waar daar 'n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die •Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” Simon •Petrus het toe 'n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie? ” Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf. Simon •Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by 'n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak. Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die •sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom 'n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. Simon •Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe, 'n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het 'n haan gekraai. Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie •onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. •Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. Pilatus het toe weer 'n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien 'n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” “Is u dan tog 'n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.” “Maar daar is 'n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was 'n misdadiger. Toe het •Pilatus Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n kroon van doringtakkies gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het ook 'n purperrooi mantel vir Hom omgehang en na Hom gegaan en aangehou sê: “Gegroet, koning van die Jode!” En hulle het Hom herhaaldelik geklap. Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” Die Jode antwoord hom toe: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself •Seun van God gemaak het. ” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie 'n antwoord gegee nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan 'n groter sonde skuldig.” Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata. Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie 'n koning nie, slegs die keiser.” Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. •Pilatus het ook 'n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was 'n belangrike dag – het die Jode vir •Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter met 'n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En 'n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim 'n dissipel van Jesus was, •Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en 'n mengsel van ongeveer 'n honderd litra mirre en adelhout gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by 'n begrafnis. By die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was. En vroegoggend, op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena tot by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. Sy hardloop toe en gaan na Simon •Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgegaan en na die graf gegaan. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni! ” Dit beteken ‘Leermeester’. Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het. Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.” Maar Thomas, een van die twaalf, wat bekend gestaan het as Didimus, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande en my vinger nie steek in die spykermerke, en my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Agt dae later was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. Terwyl die deure gesluit was, het Jesus gekom en in hulle midde gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.” Thomas het vir Hom gesê: “My Here en my God!” Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het. ” Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boekrol geskryf staan nie. Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die •Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê. Hierna het Jesus by die See van Tiberias weer aan sy dissipels verskyn. En dit is hoe Hy verskyn het: Saam daar bymekaar was Simon •Petrus en Thomas, wat bekend staan as Didimus, Natanael, van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander van sy dissipels. Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” En hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het uitgegaan en in die boot geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. Teen dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus vra hulle toe: “My kinders, julle het seker niks om te eet nie? ” Hulle antwoord Hom: “Nee.” Hy sê toe vir hulle: “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Hulle gooi dit toe uit, en vanweë die groot klomp vis was hulle nie in staat om dit in te trek nie. Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. En toe hulle aan land kom, sien hulle daar 'n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei. Amen, amen, Ek sê vir jou: Toe jy jonger was, het jy self jou gordel vasgemaak en gegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou gordel vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. ” Hy het dit gesê om aan te dui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. En nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir Petrus: “Volg My!” Toe •Petrus omdraai, sien hy dat die dissipel vir wie Jesus liefgehad het, hulle volg, die een wat ook tydens die maaltyd teen sy bors aangeleun en gevra het: “Here, wie is dit wat U gaan verraai?” Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Here, maar wat van hom?” Jesus sê vir hom: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen? Volg jy My!” Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sou sterf nie. Jesus het egter nie vir hom gesê dat hy nie sou sterf nie, maar: “As Ek wil hê hy moet bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen?” Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het, en ons weet dat sy getuienis geloofwaardig is. Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. As dit een vir een neergeskryf sou word, sou die wêreld self, dink ek, die •boekrolle wat geskryf sou word, nie kon bevat nie. Die eerste berig, Teofilus, het ek geskryf oor alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het, tot die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy deur die Heilige Gees opdragte gegee het aan die •apostels wat Hy uitgekies het. Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor 'n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die •koninkryk van God gepraat het. Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en 'n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het. ” Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, 'n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: •Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers. In daardie dae het •Petrus tussen die broers opgestaan – daar was ongeveer honderd-en-twintig mense bymekaar – en gesê: “Broers, die Skrifwoord moes vervul word wat die Heilige Gees vroeër by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het. Hy het vir die mense wat Jesus gearresteer het, as gids opgetree, aangesien hy een uit ons geledere was, en deel gehad het aan ons bediening. Hy het mos 'n stuk grond aangeskaf uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder al die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die Psalms geskryf: “ ‘Laat sy woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin bly nie.’ En: “ ‘Laat 'n ander sy amp as opsiener oorneem.’ “Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as 'n getuie van sy opstanding optree.” Hulle het toe twee voorgestel: Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias. Daarop het hulle soos volg gebid: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het om die taak van hierdie diens van •apostel oor te neem, waarvan Judas afvallig geraak het, om na die plek te gaan wat hom toekom.” Toe het hulle geloot, en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg. Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: “ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’ “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ “Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ “God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ” Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg. Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg. Op die negende uur, die uur van gebed, was •Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. 'n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om 'n aalmoes te vra. Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om 'n aalmoes te ontvang. Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!” Hy het toe na hulle gekyk in die verwagting om iets van hulle te ontvang. Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! ” Hy het hom aan sy regterhand gegryp en opgehelp. Onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. Die hele volk het gesien hoe hy God loop en prys. Hulle het hom herken as die een wat by die Mooipoort van die tempelterrein gesit het met die oog op aalmoese, en hulle was vol verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. Terwyl die man aan •Petrus en Johannes bly vashou, het die hele volk stomgeslaan om hulle saamgedrom in die pilaargang bekend as die Pilaargang van Salomo. Toe Petrus dit sien, het hy die volk toegespreek: “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd? Waarom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of godvresendheid laat loop het? Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik – Hom wat julle oorgelewer het en voor •Pilatus verloën het, al het hy beslis dat Hy vrygelaat word. Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat 'n moordenaar vir julle begenadig word; maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies. Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee. En nou, broers, ek weet dat julle uit onkunde opgetree het, soos ook julle leiers; maar op hierdie manier het God in vervulling laat gaan wat Hy vroeër by monde van al sy profete aangekondig het, naamlik dat sy Christus sou ly. Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word, en vanaf die Here self tye van verkwikking kan aanbreek, en Hy die Christus wat vir julle aangewys is, kan stuur, naamlik Jesus. Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het. Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so 'n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê. Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’ Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig. Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.” Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die •Sadduseërs op hulle afgekom, hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het. Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. Hulle het •Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. “Hy is “ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. ” Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag: “Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.” Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar. Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het: “ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’ “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig. Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en •siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het. Josef, 'n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – het 'n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 'n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net 'n gedeelte gebring en aan die voete van die •apostels neergelê. •Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe. Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.” Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.” Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele •gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval. Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. Hulle was almal eensgesind bymekaar in die Pilaargang van Salomo. Van die res van die volk het niemand dit egter gewaag om by die gelowiges aan te sluit nie, alhoewel die volk hoë agting vir hulle gehad het. Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val. Ook uit die dorpe in die omgewing van Jerusalem het skares saamgestroom en hulle siekes en mense wat deur •onrein geeste geteister is, gebring, en hulle is almal genees. Maar die hoëpriester het opgestaan, en al sy ondersteuners, die party van die •Sadduseërs, het vol naywer die •apostels gevange laat neem en hulle in die openbare tronk laat gooi. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en gesê: “Gaan staan in die tempelterrein en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie lewe.” Hulle het gehoor gegee en teen ongeveer dagbreek die tempelterrein binnegegaan en die mense onderrig. Toe die hoëpriester en sy ondersteuners opdaag, het hulle die Sanhedrin, die hele Raad van Familiehoofde van Israel, ontbied en die apostels by die tronk laat haal. Maar toe die dienaars daar aankom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggegaan en berig: “Ons het die tronk sorgvuldig toegesluit gevind met die wagte wat voor die deure staan, maar nadat ons oopgesluit het, het ons niemand daarbinne gevind nie.” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die leierpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daaroor verward, oor wat dit kon beteken. Maar iemand het hulle kom inlig: “Kyk, die manne wat julle in die tronk laat gooi het, staan die volk op die tempelterrein en onderrig.” Die bevelvoerder en die dienaars het hulle toe gaan haal – sonder geweld, omdat hulle bang was dat hulle deur die volk gestenig sou word. Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring. ” Maar •Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe hulle dit hoor, was hulle rasend van woede en wou die apostels doodmaak. Maar toe staan iemand in die Sanhedrin op, 'n •Fariseër met die naam Gamaliël, 'n wetgeleerde met hoë aansien by die hele volk, en gee opdrag dat hulle die mense vir 'n oomblik na buite neem. Daarop sê hy vir hulle: “Israeliete, dink goed na oor wat julle met hierdie mense gaan doen, want 'n ruk gelede het Teudas opgestaan en daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en ongeveer vierhonderd manne het by hom aangesluit. Hy is doodgemaak, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het in die niet verdwyn. Ná hom het Judas, die Galileër, in die dae van die volkstelling na vore getree en die volk agter hom aan tot opstand aangehits. Ook hy het omgekom, en almal wat na hom geluister het, het uitmekaar gespat. Maar nou sê ek vir julle: Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!” Hulle het toe na hom geluister. En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat. Daarna het hulle van die Sanhedrin weggegaan, bly dat hulle waardig bevind is om ter wille van sy Naam skandelik behandel te word. Boonop het hulle nie opgehou om elke dag op die tempelterrein en van huis tot huis onderrig te gee nie, en ook nie om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie. Maar in dié dae, toe die aantal dissipels al hoe meer geword het, het 'n gemor onder die Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien word. Die twaalf het daarop die hele groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie goed dat ons die woord van God verwaarloos om by die tafels diens te verrig nie. Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel. En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” Die voorstel het by die hele groep byval gevind, en hulle het vir Stefanus, vol van geloof en die Heilige Gees, en ook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus, 'n proseliet uit Antiogië, gekies. Hulle het hierdie manne aan die •apostels voorgestel, en die apostels het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder, en 'n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword. En Stefanus, vol genade en krag, het groot wonders en tekens onder die volk verrig. Sommige van die Sinagoge van die Libertyne, soos dit bekend gestaan het, Sireneërs en Aleksandryne, asook sommige mense uit Silisië en Asië, het na vore getree en met Stefanus geredeneer; maar hulle was nie opgewasse teen die wysheid waarmee, en die Gees deur wie, hy gespreek het nie. Toe het hulle mans aangehits om te verklaar: “Ons het hom lasterlike dinge oor Moses en God hoor sê.” Hierdeur het hulle die volk, die familiehoofde en die skrifkenners opgesweep. Toe het hulle na hom gegaan, hom gegryp en voor die Sanhedrin gebring. Hulle het ook vals getuies na vore laat kom wat verklaar het: “Hierdie man hou nie op om teen hierdie heilige plek en die wet te praat nie. Ons het hom hoor sê, ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek afbreek en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het.’ ” Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk. Die hoëpriester het toe gevra: “Is dit regtig so?” En Stefanus het geantwoord: “Broers en vaders, luister! Die God van heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was, nog voordat hy hom in Haran gevestig het, en vir hom gesê, ‘Verlaat jou land en jou familie, en gaan na die land wat Ek jou sal wys.’ Toe het hy die land van die Galdeërs verlaat en hom in Haran gaan vestig, en daarvandaan het Hy hom, ná sy vader se dood, na hierdie land laat verhuis waarin julle nou woon. Hy het nie vir hom 'n erfdeel daarin gegee nie, nie eers 'n voetbreedte nie; maar Hy het beloof ‘om dit as besitting te gee aan hom en sy nageslag ná hom’, al het hy toe nog nie 'n kind gehad nie. God het dit so gestel, ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort, en die inwoners sal hulle slawe maak en vierhonderd jaar lank laat swaarkry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,’ het God gesê, ‘en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien’. En Hy het met hom die verbond van besnydenis gesluit; en so het hy Isak verwek en hom op die agtste dag besny, en so ook Isak vir Jakob, en Jakob die twaalf stamvaders. “En omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom, en het hom uit al sy beproewings gered, en aan hom guns en wysheid in die oë van die farao, die koning van Egipte, geskenk, en hy het hom as bestuurder oor Egipte en oor sy hele huishouding aangestel. Toe het daar hongersnood en groot ellende oor die hele Egipte en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen kos kry nie. Maar toe Jakob hoor dat daar graan in Egipte is, het hy ons vaders die eerste keer daarheen gestuur. Met die tweede besoek het Josef hom aan sy broers bekend gemaak, en sy herkoms het ook aan die farao bekend geraak. Josef het toe mense gestuur en sy vader Jakob laat haal, en ook die hele familie van vyf-en-sewentig mense. Jakob het na Egipte afgegaan en daar gesterf, hy en ons vaders, en hulle is na Sigem gebring en neergelê in die graf wat Abraham met 'n bedrag silwer by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het. “Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad. “ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het. “Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe het hulle in daardie dae 'n beeld van 'n kalf gemaak, en aan dié afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle oor hulle handewerk verheug. Maar God het Hom van hulle weggekeer en hulle daaraan uitgelewer om die leërskare hemelliggame te aanbid, soos daar geskryf staan in die profete: “ ‘Het julle ooit vir My slagoffers en ander offers gebring gedurende die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Nee, julle het die tent van Moleg saamgedra, en die ster van julle god Refan, beelde wat julle gemaak het om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon laat wegvoer.’ “Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: “ ‘ Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank vir my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!” Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap. Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi. Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers. Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur. Toe die •apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle •Petrus en Johannes daarheen gestuur. Hulle het gegaan en vir hulle gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle neergedaal nie; hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hierna het die apostels hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied, met die woorde: “Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.” Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry! Jy het geen aandeel of aanspraak in hierdie saak nie, want jou hart is nie opreg voor God nie. Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word, want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik. ” Maar Simon het geantwoord en gesê: “Bid julle tot die Here vir my dat niks van wat julle gesê het, my oorkom nie.” Nadat hulle kragtig getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in talle Samaritaanse dorpe verkondig. 'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is 'n verlate pad.” Hy het toe gereedgemaak en vertrek. En kyk, daar was 'n man van Ethiopië, 'n eunug, 'n hoë amptenaar van die kandake, die koningin van die Ethiopiërs, wat in beheer van haar hele skatkis was en na Jerusalem gegaan het om te aanbid. Hy was op pad terug, en het op sy wa die profeet Jesaja gesit en lees. Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.” Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?” Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit. Die Skrifgedeelte wat hy besig was om te lees, was: “Soos 'n skaap is Hy ter slagting gelei, en soos 'n lam wat stom is voor sy skeerder, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is regspraak Hom ontneem, en wie sal sy nageslag kan opnoem? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.” Die eunug sê toe vir Filippus: “Ek vra jou, van wie sê die profeet dit – van homself of van iemand anders?” Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie van Jesus aan hom verkondig. Langs die pad kom hulle by 'n plek waar daar water is. Die eunug sê toe: “Kyk, water! Wat verhoed dat ek gedoop word?” Hy het opdrag gegee dat die wa moet stilhou; en hulle het albei afgeklim tot in die water, Filippus sowel as die eunug, en hy het hom gedoop. Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit. Filippus, egter, is in Asdod gevind. En soos wat hy rondgereis het, het hy die evangelie in al die stede verkondig, totdat hy in Caesarea aangekom het. Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die •sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie. Daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In 'n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, en het in 'n visioen gesien dat 'n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien. ” Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly. ” Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin. Hy was 'n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is. Maar nadat 'n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur 'n opening in die muur in 'n mandjie laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur. Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem. •Petrus het oral rondgereis, en ook by die •heiliges wat in Lidda woon, aangekom. Daar het hy 'n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend. In Joppe was daar 'n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat •Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die •heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het nog 'n hele paar dae in Joppe by 'n sekere Simon, die leerlooier, gebly. Daar was 'n man in Caesarea bekend as Cornelius, 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. Hy het teen die negende uur van die dag in 'n visioen duidelik 'n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot 'n gedenkoffer voor God opgestyg. Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. Hy gaan tuis by 'n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe. Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem. Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, 'n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur 'n heilige engel 'n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net 'n mens. ” En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is. Nou vra ek, waarom het julle my ontbied?” Cornelius antwoord toe: “Vier dae gelede was ek teen hierdie tyd, op die negende uur, besig om in my huis te bid. Opeens staan daar toe 'n man in 'n stralende gewaad voor my en sê, ‘Cornelius, jou gebed is verhoor en jou liefdadigheid het voor God in herinnering gekom. Stuur dan iemand na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy is 'n gas van Simon, die leerlooier, by 'n huis langs die see. ’ Ek het toe onmiddellik mense na u gestuur, en dit is goed dat u gekom het. Hier is ons nou almal in die teenwoordigheid van God aanwesig om alles te hoor wat deur die Here aan u opgedra is.” Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense. Julle weet wat dwarsdeur Judea gebeur het – dit het begin in Galilea, ná die doop wat Johannes verkondig het – hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was. Ons is getuies van alles wat Hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Maar hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Vir Hom het God op die derde dag opgewek, en beskik dat Hy verskyn – nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vroeër reeds deur God aangewys is – aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood opgestaan het. En Hy het ons beveel om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat dit Hy is wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies. Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.” Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal. Die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met •Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is. Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof. Toe sê Petrus: “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?” En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus •Christus gedoop word. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae aan te bly. Die •apostels en die broers dwarsdeur Judea het gehoor dat ook die heidene die woord van God aanvaar het. Toe •Petrus na Jerusalem opgegaan het, het diegene wat besny is, met hom geargumenteer en gesê: “Jy was by onbesnede mans aan huis en het saam met hulle geëet.” Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê: “Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek 'n visioen gesien: iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom. En ek het aandagtig daarna gekyk, en opgemerk, en viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere, asook voëls van die hemel gesien. Ek het ook 'n stem vir my hoor sê, ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ Maar ek het geantwoord, ‘Onder geen omstandighede nie, Here! Want niks wat besoedel of •onrein is, het al ooit by my mond ingegaan nie.’ Die stem het toe 'n tweede keer uit die hemel geantwoord, ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.’ Dit het drie maal gebeur, en toe is alles weer in die hemel opgetrek. En kyk, skielik het daar drie mans wat van Caesarea af na my gestuur is, aangekom by die huis waar ons was. En die Gees het vir my gesê dat ek sonder aarseling saam met hulle moes gaan. Hierdie ses broers het toe saam met my gegaan en ons het die man se huis binnegegaan. Daarop het hy ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê, ‘Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy sal vir jou 'n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis.’ En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.” Die gelowiges dan, wat uitmekaar gedryf is as gevolg van die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het so ver as Fenisië, Ciprus en Antiogië getrek, en die woord aan niemand anders nie as net aan die Jode verkondig. Maar toe party van hulle, mans uit Ciprus en Sirene, in Antiogië kom, het hulle ook met die Helleniste gepraat en die evangelie van die Here Jesus aan hulle verkondig. Die hand van die Here was oor hulle, en 'n groot aantal het gelowig geword en na die Here gedraai. Die berig oor hulle het die •gemeente in Jerusalem ter ore gekom, en hulle het Barnabas gestuur om na Antiogië te gaan. Toe hy daar aankom en die genade van God sien, was hy bly en het almal aangemoedig om met vaste voorneme van hart aan die Here getrou te bly. Hy was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en geloof. En 'n aansienlike skare is vir die Here bygevoeg. Hierna het Barnabas na Tarsus vertrek om Saulus op te soek. Hy het hom opgespoor en hom na Antiogië gebring. Hulle was 'n hele jaar lank saam met die gemeente en het 'n aansienlike skare onderrig. In Antiogië is die dissipels vir die eerste keer Christene genoem. In daardie tyd het daar profete uit Jerusalem na Antiogië gekom. En een van hulle, met die naam Agabus, het na vore gekom en deur die Heilige Gees voorspel dat 'n swaar hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Dit het in die tyd van Claudius gebeur. Die dissipels het daarom besluit dat elkeen van hulle volgens vermoë 'n bydrae sou stuur vir die versorging van die broers wat in Judea woon. En hulle het dit gedoen deur die bydrae saam met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge te stuur. In daardie tyd het koning Herodes die hand geslaan aan sommige uit die •gemeente, om hulle leed aan te doen. Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat doodmaak. En toe hy sien dat dit by die Jode byval vind, het hy verder gegaan en ook vir •Petrus gevange laat neem. Dit was die tyd van die Fees van die Ongesuurde Brood. Nadat hy hom laat arresteer het, het hy hom in die tronk laat gooi en oorgegee aan vier afdelings van vier soldate elk, met die bedoeling om hom ná die Pasga voor die volk te bring. So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar 'n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan. Die nag voordat Herodes hom wou voorbring, was •Petrus aan die slaap tussen twee soldate. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Skielik het 'n engel van die Here daar gestaan, en 'n lig het in die sel geskyn. Toe gee hy Petrus 'n stamp teen die sy, maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” En die kettings het van sy hande afgeval. Die engel sê toe vir hom: “Omgord jou en trek jou sandale aan!” Hy het so gemaak. Daarop sê die engel vir hom: “Gooi jou bokleed om en volg my!” En hy het uitgegaan en hom gevolg, sonder om te besef dat wat deur die bemiddeling van die engel gebeur het, die werklikheid is. Hy het nog steeds gedink hy sien 'n gesig. Maar toe hulle by die eerste en die tweede wag verby was, het hulle gekom by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buitekant kom en een straat verder gestap het, het die engel hom meteens verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: “Nou besef ek waarlik die Here het sy engel gestuur, en Hy het my gered uit die hand van Herodes en ook van alles wat die Joodse volk verwag het.” Met dié besef gaan hy toe na die huis van Maria, die moeder van Johannes, bekend as Markus, waar daar baie mense byeen was en gebid het. Toe hy aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rode gegaan om te antwoord. Sy het Petrus se stem herken, en uit pure vreugde nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Hulle het egter vir haar gesê: “Jy is mal!” Maar sy het volgehou dat dit so is. Toe sê hulle: “Dit is sy engel.” Petrus het egter aanhou klop, en toe hulle oopmaak, het hulle hom gesien, en hulle was verbaas. Maar hy het met 'n handgebaar vir hulle beduie om stil te bly en vir hulle beskryf hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. Toe sê hy: “Vertel dit aan Jakobus en die broers.” En hy het buitentoe gegaan en na 'n ander plek vertrek. Teen dagbreek was daar onder die soldate geen geringe opskudding oor wat dan van Petrus geword het nie. Herodes het hom laat soek, maar nie gekry nie, en nadat hy die wagte verhoor het, het hy opdrag gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het hy van Judea na Caesarea gereis en daar gebly. Herodes was woedend vir die mense van Tirus en Sidon. Hulle het egter almal saam na hom gekom, en nadat hulle Blastus, wat toesig gehad het oor die koninklike slaapkamers, oorgehaal het, het hulle om vrede gevra, omdat die gebied waar hulle voedsel vandaan gekom het, afhanklik van die koning s'n was. Op die vasgestelde dag het Herodes 'n koninklike kleed aangetrek, op die regbank plaasgeneem en hulle toegespreek. Daarop het die volk uitgeroep: “Die stem van 'n god en nie van 'n mens nie!” En onmiddellik het 'n engel van die Here hom neergevel, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie en, verteer deur wurms, het hy gesterf. Maar die woord van God het gegroei en uitgebrei. En Barnabas en Saulus het, nadat hulle hulle diens in Jerusalem voltooi het, teruggekeer en Johannes, bekend as Markus, saamgeneem. In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees gestuur, en hulle het afgereis na Seleukië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. Toe hulle in Salamis aankom, het hulle die woord van God in die Joodse •sinagoges verkondig, met Johannes as hulle helper. Hulle het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle 'n sekere Joodse towenaar aangetref het, 'n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor. Maar die towenaar Elimas – want so word die naam Barjesus vertaal – het hulle teengestaan, omdat hy die prokonsul van die geloof wou weghou. Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees, gesê: “O, kind van die Duiwel, vyand van alle •geregtigheid, en vol allerlei listighede en elke soort bedrog – sal jy nie ophou om die reguit paaie van die Here te verdraai nie? Maar kyk, nou gaan die hand van die Here jou tref en jy sal 'n ruk lank blind wees en die son nie sien nie.” Onmiddellik het 'n mistigheid en duisternis hom oorval en hy het rondgestrompel en mense gesoek om hom aan die hand te lei. Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy, verstom oor die leer van die Here, gelowig geword. Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en Perge in Pamfilië bereik. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Hulle het van Perge verder gegaan en by Antiogië in Pisidië aangekom, en op die Sabbat die •sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die voorlesing van die Wet en die Profete, het die leiers van die sinagoge 'n boodskap na hulle gestuur met die woorde: “Broers, as julle 'n woord van bemoediging vir die volk het, sê dit!” Paulus het opgestaan, 'n handgebaar gemaak en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers uitverkies, en het hulle tydens hulle verblyf as •vreemdelinge in Egipteland tot 'n volk verhef, hulle met 'n uitgestrekte arm daar uitgelei, en hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur. In die land Kanaän het Hy sewe nasies uitgedelg en hulle land as erfdeel aan ons voorouers gegee. Dit het ongeveer vierhonderd-en-vyftig jaar geduur. En daarna het Hy rigters gegee, tot by die profeet Samuel. Hierna het hulle aangedring op 'n koning, en God het Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar aan hulle gegee. Nadat God hom as koning verwyder het, het Hy Dawid tot hulle koning gemaak. Oor hom het Hy soos volg getuig, ‘In Dawid, die seun van Isai, het Ek 'n man na my hart gevind, wat al my wilsbesluite sal uitvoer. ’ Uit hierdie man se nageslag het God vir Israel, in ooreenstemming met sy belofte, Jesus as Verlosser voortgebring. Voor Jesus se openbare optrede het Johannes aan die hele volk Israel die doop van bekering verkondig. Toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê, ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk, ná my kom iemand wie se sandale ek nie werd is om van sy voete los te maak nie. ’ “Broers, kinders van Abraham se geslag, en die godvresendes onder julle, aan ons is die boodskap van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by •Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek. In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan: “ ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’ “En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê: “ ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes van Dawid gee.’ “Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm: “ ‘U sal u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.’ “Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag volgens God se raadsbesluit gedien het, gesterf, en is by sy voorvaders begrawe – en hy het ontbinding beleef; maar Hy vir wie God opgewek het, het nie ontbinding beleef nie. Sorg dat wat in die Profete gesê is, nie met julle gebeur nie: “ ‘Kyk, julle spotters, staan verstom en gaan ten gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, 'n daad wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie.’ ” Toe Paulus en Barnabas buite kom, het die mense gesmeek dat hierdie dinge op die volgende Sabbat ook aan hulle vertel word. Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef. Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die skare sien, is hulle vervul met naywer, en het hulle dit wat Paulus gesê het, teengestaan en belaster. Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. Want so het die Here dit aan ons opgedra: “ ‘Ek het jou aangewys as 'n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.’ ” Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei. Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het 'n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. Hulle het toe die stof van hulle voete afgeskud as getuienis teen die stad en na Ikonium vertrek. Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees. In Ikonium het dit op dieselfde manier gebeur: Hulle het die Joodse •sinagoge binnegegaan en so gepreek dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. Maar die ongelowige Jode het die heidene opgesweep en hulle gemoedere vergiftig teen die broers. Tog het die •apostels 'n geruime tyd daar deurgebring en met vrymoedigheid gepreek – vol vertroue in die Here, wat die boodskap van sy genade bevestig het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle toedoen gebeur. Maar die inwoners van die stad was verdeeld – sommige het hulle by die Jode geskaar en ander by die apostels. Toe daar van die heidene sowel as die Jode, en ook hulle leiers, 'n aanslag kom om die apostels aan te rand en te stenig, het hulle dit te wete gekom en na die Likaoniese stede, Listra en Derbe, en die omliggende streke gevlug en daar die evangelie bly verkondig. In Listra het daar 'n man gesit wat nie sy voete kon gebruik nie. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. Hy het na Paulus se woorde geluister. Paulus het stip na hom gekyk, en toe hy sien dat hy die geloof het om genees te word, het hy met 'n harde stem uitgeroep: “Staan op, regop op jou voete!” En hy het opgespring en begin rondstap. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en na ons afgedaal!” Vir Barnabas het hulle Zeus genoem en vir Paulus, omdat hy die woordvoerder was, Hermes. Die priester van Zeus, wie se tempel net buite die stad was, het bulle en blomkranse na die stadspoorte gebring en wou saam met die skares 'n offer bring. Toe die •apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur, tussen die skare ingespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is ook in alle opsigte mense, net soos julle! Ons verkondig aan julle die evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat om op hulle eie paaie te gaan, maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” Maar selfs al het hulle dit gesê, het hulle beswaarlik die skare daarvan weerhou om offers aan hulle te bring. Maar daar het Jode uit Antiogië en Ikonium aangekom en die skare oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep, omdat hulle gedink het hy is dood. Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en die stad binnegegaan. Die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek. Nadat hulle die evangelie in daardie stad verkondig en 'n redelike aantal dissipels gewerf het, het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië teruggekeer. Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: “Ons moet deur baie ontberings heen in die •koninkryk van God ingaan.” Hulle het in elke •gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het. Nadat hulle deur Pisidië gereis het, het hulle na Pamfilië gegaan, waar hulle in Perge die woord verkondig het. Daarna het hulle na Attalië afgereis, en daarvandaan gevaar na Antiogië, waar hulle vroeër aan die genade van God opgedra is vir die werk wat hulle nou voltooi het. Met hulle aankoms het hulle die gemeente saamgeroep en vertel van alles wat God met hulle gedoen het, en dat Hy vir die heidene 'n deur tot die geloof oopgemaak het. Hulle het 'n lang tyd saam met die dissipels daar deurgebring. Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.” Aangesien hieroor meningsverskil ontstaan het, en Paulus en Barnabas met hulle 'n woordestryd gevoer het wat hoegenaamd nie onbenullig was nie, het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog 'n paar ander uit hulle geledere na die •apostels en ouderlinge in Jerusalem moes opgaan oor hierdie strydvraag. Hulle is toe deur die •gemeente weggestuur, en het deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig oor die bekering van die heidene berig, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente en die apostels en ouderlinge ontvang. Paulus en Barnabas het vertel wat God alles met hulle gedoen het. Sommige mense wat aan die •Fariseërs se party behoort en gelowig geword het, het egter opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en opdrag kry om die •Wet van Moses te onderhou.” Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.” Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene 'n volk vir sy Naam sou verkry. Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan: “ ‘Daarna sal Ek terugkom en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel, sodat die res van die mensdom die Here kan soek, ja, al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is. So sê die Here, wat hierdie dinge doen’ wat van lank gelede bekend is. “ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.” Hierna het die •apostels en ouderlinge, in oorleg met die hele •gemeente, besluit om manne wat uit eie geledere gekies is, saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur. Hulle was Judas, bekend as Barsabbas, en Silas, beide leiers onder die broers. Hulle het die volgende skrywe met hulle saamgestuur: “Die apostels en ouderlinge, julle broers, aan die broers uit die heidene in Antiogië, Sirië en Silisië: Gegroet! “Aangesien ons gehoor het dat sommige mense wat van ons af gekom het, sonder dat ons hulle opdrag gegee het, julle met hulle woorde ontstel en julle gemoedere verwar het, het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Barnabas en Paulus – mense wat hulle lewens oorgegee het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons het dus Judas en Silas gestuur, en hulle sal hierdie dinge mondeling aan julle bevestig. Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes: Bly weg van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle hiervan weerhou, sal julle goed doen. Laat dit met julle goed gaan.” So is die manne weggestuur, en hulle het na Antiogië gereis. Nadat hulle die gemeente bymekaar laat kom het, het hulle die brief oorhandig. Die gemeente het die brief gelees, en was verheug oor die bemoediging. Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broers met baie woorde bemoedig en versterk. Hulle het 'n tyd lank daar gebly, en is toe in vrede deur die gelowiges teruggestuur na die mense wat hulle afgevaardig het. Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly, en saam met baie ander onderrig gegee en die evangeliewoord van die Here verkondig. 'n Paar dae later het Paulus aan Barnabas gesê: “Kom ons gaan terug en besoek die broers in elke dorp waar ons die woord van die Here verkondig het, en gaan kyk hoe dit met hulle gaan.” Barnabas wou ook Johannes, bekend as Markus, saamneem, maar Paulus het nie gedink dat dit reg is om die man saam te neem wat hulle by Pamfilië in die steek gelaat en hulle nie vir die werk vergesel het nie. Daar het toe so 'n skerp meningsverskil tussen hulle ontstaan dat hulle uitmekaar gegaan het. Barnabas het vir Markus saamgeneem en na Ciprus gevaar. Paulus het vir Silas gekies en het vertrek, nadat hulle deur die broers aan die genade van die Here opgedra is. Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes daar versterk. Paulus het na Derbe gegaan, en toe na Listra. En kyk, daar was 'n dissipel met die naam Timoteus – die seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse pa. Hy was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het. Paulus wou Timoteus saam op reis neem, en het hom laat besny ter wille van die Jode wat in daardie streke gewoon het, omdat almal geweet het dat sy vader 'n Griek was. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die •apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges oorgedra om dit te onderhou. Sodoende is die •gemeentes in die geloof versterk en hulle het van dag tot dag in getal toegeneem. Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. Daardie nag het Paulus 'n visioen gehad. 'n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal. Terwyl ons 'n keer op pad was na die bidplek, het 'n slavin met 'n gees van waarsêery wat met haar voorspellings baie wins vir haar eienaars ingebring het, ons tegemoet gekom. Sy het agter Paulus en ons aan geloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” Dit het sy dae aaneen gedoen. Paulus het daaroor ontsteld geraak, omgedraai en vir die gees gesê: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan!” En presies op daardie oomblik het die gees uitgegaan. Toe haar eienaars merk dat hulle hoop op 'n inkomste daarmee heen was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die owerhede; en nadat hulle hulle voorgebring het, het hulle vir die stadsbestuurders gesê: “Hierdie mense stook onrus in ons stad, want hulle is Jode en verkondig gebruike wat vir ons as Romeine nie toelaatbaar is om te aanvaar of na te volg nie.” Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem. Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het. Teen dagbreek het die stadsbestuurders die geregsdienaars gestuur met die opdrag: “Laat daardie mense vry!” Die tronkbewaarder het die boodskap aan Paulus oorgedra: “Die stadsbestuurders het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Kom dan nou uit en gaan in vrede!” Maar Paulus het die geregsdienaars geantwoord: “Hulle het ons sonder verhoor in die openbaar laat slaan en in die tronk laat gooi, alhoewel ons Romeinse burgers is, en nou wil hulle ons stilletjies uitgooi? Beslis nie! Laat hulle ons self kom uitlei.” Die geregsdienaars het hierdie boodskap aan die stadsbestuurders oorgedra. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. Hulle het hulle om verskoning kom vra, hulle uitgelei en versoek om die stad te verlaat. Toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die broers gesien, hulle moed ingepraat en vertrek. Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Thessalonika gekom, waar daar 'n Joodse •sinagoge was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na hulle gegaan en op drie Sabbatdae ná mekaar met hulle uit die Skrifte geredeneer. Deur die Skrifte uit te lê, het hy bewys dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Christus is Jesus, wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê. Sommige van hulle is oortuig en het by Paulus en Silas aangesluit, so ook 'n menigte Grieke wat God vereer, en geen geringe aantal vooraanstaande vroue nie. Die Jode het egter jaloers geword, uit 'n klomp slegte manne wat op die markplein leeglê, 'n oproerige bende gevorm, en die stad in rep en roer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk, en na Paulus en Silas gesoek om hulle voor 'n volksvergadering te daag. Maar toe hulle hulle nie kry nie, het hulle Jason en 'n paar ander broers na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: “Die mense wat die hele wêreld in opstand bring, het nou ook hier aangekom en Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle tree almal in stryd met die keiser se voorskrifte op deur te sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus. ” Hierdeur het hulle die skare en die stadsowerhede wat dit gehoor het, ontstel. Eers nadat hulle van Jason en die ander borgtog ontvang het, het hulle hulle vrygelaat. Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. As gevolg daarvan het baie van hulle, en ook nie 'n geringe aantal van die vooraanstaande Griekse vroue en mans nie, gelowig geword. Toe die Jode van Thessalonika egter verneem dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig is, het hulle ook daar die skares gaan opsweep en in oproer gebring. Die broers het Paulus toe dadelik weggestuur om na die kus te gaan, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. Die mense wat Paulus begelei het, het hom tot by Athene geneem en vertrek, met 'n opdrag aan Silas en Timoteus om so spoedig moontlik weer na Paulus terug te keer. Terwyl Paulus in Athene op hulle gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Hy het in die sinagoge met die Jode en die mense wat God vereer, geredeneer, en ook elke dag op die markplein met wie ook al daar was. Sommige van die Epikuriese en Stoïsynse filosowe het ook met hom gedebatteer, en party van hulle het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” En omdat hy Jesus en die opstanding verkondig het, het ander van hulle weer opgemerk: “Dit lyk of hy 'n verkondiger van vreemde gode is.” Hulle het hom geneem en na die Areopagus gebring en gesê: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore, en ons wil graag weet wat dit beteken.” Al die Atheners en ook die uitlanders wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie. Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “ ‘Ons is ook van sy geslag.’ “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” So het Paulus uit hulle midde vertrek. 'n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle. Daarna het Paulus Athene verlaat en na Korinthe gegaan. Daar het hy 'n Jood met die naam Akwila aangetref, 'n boorling van Pontus, wat kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, daar aangekom het uit Italië, omdat Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het na hulle gegaan, en omdat hy dieselfde ambag as hulle beoefen het – hulle was immers tentmakers van beroep – het hy by hulle gebly en saam met hulle gewerk. Elke Sabbat het hy in die •sinagoge geredeneer en probeer om Jode sowel as Grieke te oortuig. En toe Silas en Timoteus van Macedonië af daar aangekom het, het Paulus hom op die verkondiging toegespits en teenoor die Jode getuig dat Jesus die Christus is. Maar omdat hulle aangehou het om hom teen te staan en om lasterlike dinge te sê, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop – sonder skuld daaraan sal ek van nou af na die heidene gaan.” Hy is toe daarvandaan weg, en het na die huis gegaan van 'n man met die naam Titius Justus, wat God vereer het; sy huis was langs die sinagoge. Krispus, die leier van die sinagoge, het saam met sy hele huis tot geloof in die Here gekom. Ook baie van die Korinthiërs wat hom gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. Die Here het een nag deur 'n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal 'n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en hulle in die woord van God onderrig. Toe Gallio die prokonsul van Agaje word, het die Jode egter eenparig teen Paulus opgetree en hom voor die regbank gebring en gesê: “Hierdie man oorreed die mense om God so te vereer dat dit in stryd met die wet is.” Net toe Paulus wou begin praat, het Gallio vir die Jode gesê: “O, Jode, as dit oor 'n onreg of ernstige misdaad gegaan het, sou ek met rede julle aanklag toegelaat het; maar aangesien dit 'n geskil is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle maar self toesien. Ek wil nie daaroor regter wees nie.” En hy het hulle van die regbank weggejaag. Toe het almal vir Sostenes, die leier van die sinagoge, gegryp en hom voor die regbank geslaan. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie. Nadat Paulus nog 'n geruime tyd by die broers vertoef het, het hy afskeid geneem en per skip na Sirië vertrek, vergesel van Priscilla en Akwila. In Kenchreë het hy sy kop laat kaal skeer, omdat hy 'n gelofte afgelê het. Hulle het in Efese aangekom, waar hy sy reisgenote agtergelaat het. Self het hy egter die •sinagoge binnegegaan en met die Jode geredeneer. Alhoewel hulle hom versoek het om langer te bly, het hy nie ingestem nie, maar afskeid geneem en gesê: “Ek sal, as dit God se wil is, weer na julle kom.” Hy het toe van Efese af weggevaar. Nadat hy in Caesarea geland het, het hy die •gemeente gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Nadat Paulus 'n tyd lank daar gebly het, het hy weer vertrek, en van plek tot plek deur die landstreek van Galasië en deur Frigië gereis, en al die dissipels versterk. 'n Jood met die naam Apollos, 'n boorling van Aleksandrië, het in Efese aangekom. Hy was 'n welsprekende man, goed onderlê in die Skrifte. Hy het oor die Weg van die Here onderrig ontvang, en geesdriftig gepraat en deeglike onderrig gegee oor die dinge wat op Jesus betrekking het, alhoewel hy net die doop van Johannes geken het. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Toe hy na Agaje wou afreis, het die broers hom aangemoedig en vir die dissipels geskryf om hom gasvry te ontvang. Met sy aankoms daar was hy van groot hulp vir diegene wat deur die genade gelowig geword het, omdat hy die Jode kragtig in die openbaar teengespreek het, terwyl hy uit die Skrifte bewys het dat Jesus die Christus is. Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende gebiede gereis en afgegaan na Efese, waar hy 'n aantal dissipels aangetref het. Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.” Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes ”, het hulle geantwoord. Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop, toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop. Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. Altesaam was daar ongeveer twaalf mans. Paulus het toe na die •sinagoge gegaan en daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek, geredeneer en hulle probeer oortuig aangaande die •koninkryk van God. Maar aangesien sommige van hulle hardkoppig was en nie wou glo nie, en die Weg voor die menigte beswadder het, het hy weggegaan, die dissipels van hulle afgesonder en daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou. Dit het twee jaar lank aangehou, sodat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het. God het deur die hande van Paulus besonder kragtige dade verrig, sodat selfs wanneer sweetdoeke en voorskote wat aan sy lyf was, na siekes geneem is, hulle siektes verdwyn en die bose geeste uitgewyk het. Sommige van die rondreisende Joodse geestebesweerders het ook probeer om die Naam van die Here Jesus uit te spreek oor mense met bose geeste deur te sê: “Ek besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!” Dit was Skeva, 'n Joodse leierpriester, se sewe seuns wat dit gedoen het. Maar die bose gees het hulle geantwoord: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man in wie die bose gees was, het hulle bespring en hulle almal oorweldig en die oorhand oor hulle gekry, sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis gevlug het. Dit het bekend geword onder al die Joodse en Griekse inwoners van Efese, en vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is verheerlik. Baie van diegene wat gelowig geword het, het na vore gekom, belydenis gedoen en hulle praktyke in die openbaar bekend gemaak. 'n Hele aantal van hulle wat towery bedryf het, het hulle •boekrolle saamgebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken, en bevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was. So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword. Ná hierdie gebeurtenisse het Paulus hom voorgeneem om deur Macedonië en Agaje te reis en na Jerusalem te gaan. Hy het gesê: “Nadat ek daar was, moet ek ook Rome sien.” Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, na Macedonië gestuur, terwyl hy self nog 'n tyd lank in Asië vertoef het. Juis in daardie tyd het daar 'n oproer, van geen geringe omvang nie, oor die Weg ontstaan. 'n Man met die naam Demetrius, 'n silwersmid wat Artemistempeltjies uit silwer vervaardig het, het 'n inkomste wat glad nie gering was nie, aan die ambagsmanne verskaf. Hy het hulle, en ook ander wat soortgelyke ambagte beoefen, byeengeroep en gesê: “Manne, julle weet dat ons welvaart van hierdie bedryf afhanklik is, en julle sien en hoor dat hierdie Paulus nie net in Efese nie, maar in byna die hele Asië 'n groot aantal mense oorreed en mislei het deur te sê dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. Dit hou die gevaar in dat nie net ons beroep in onguns raak nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as onbenullig beskou word en dat sy, wat in die hele Asië en die hele wêreld vereer word, van haar grootheid beroof sal word.” Toe hulle dit hoor, het hulle woedend geraak en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” En daar het verwarring oor die hele stad gekom; hulle het soos een man na die amfiteater gestorm en Paulus se reisgenote, die Macedoniërs Gaius en Aristargus, saamgesleep. Paulus wou tussen die skare ingaan, maar die dissipels het hom nie toegelaat nie. Ook sommige van die hoë amptenare van Asië wat met hom bevriend was, het vir hom 'n boodskap gestuur en by hom gepleit dat hy hom nie in die teater begewe nie. Intussen het hulle bly skreeu, sommige dit en ander dat, want die volksvergadering was in verwarring, en die meeste het nie eers geweet waarom hulle bymekaargekom het nie. Die Jode het Aleksander na vore gestoot en hom voorgesê. Aleksander het 'n handgebaar gemaak, en wou sy verdediging voor die skare lewer. Maar toe hulle agterkom dat hy 'n Jood is, het een kreet uit almal opgeklink. Hulle het twee ure lank aaneen geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” Die stadsklerk het die skare egter tot bedaring gebring en gesê: “Manne van Efese, wie is daar onder die mense wat nie weet dat die stad Efese die beskermer is van die grote Artemis se tempel en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? Omdat dit nie ontken kan word nie, is dit nodig dat julle tot bedaring kom en niks oorhaastigs aanvang nie. Want hierdie manne wat julle hierheen gebring het, is nie tempelrowers nie, en belaster ook nie ons godin nie. As Demetrius en die ambagsmanne by hom 'n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is prokonsuls daarvoor. Laat hulle mekaar daar aankla. As julle egter iets anders wil hê, dan moet dit op 'n wettige volksvergadering beslis word. Want ons loop reeds gevaar om oor vandag se oproer aangekla te word, aangesien daar geen grond is wat ons as regverdiging vir hierdie opskudding kan aanvoer nie.” Nadat hy dit gesê het, het hy die volksvergadering verdaag. Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die dissipels ontbied en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en op sy reis na Macedonië vertrek. Hy het deur daardie streke gereis, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, het hy in Griekeland aangekom waar hy drie maande deurgebring het. Aangesien die Jode 'n komplot teen hom gesmee het net toe hy na Sirië wou vaar, het hy besluit om deur Macedonië terug te keer. Hy is vergesel deur Sopater – die seun van Pirrus – uit Berea, deur Aristargus en Sekundus van Thessalonika, Gaius van Derbe en Timoteus, sowel as Tigikus en Trofimus van Asië. Hulle het vooruit gereis en in Troas op ons gewag. Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het. Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons byeengekom het. 'n Jong man met die naam Eutigus het in die venster gesit, en terwyl Paulus lank bly praat het, is hy deur 'n diep slaap oorval. Oorweldig deur die slaap, het hy van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is. Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!” Hy het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Daarna het hy nog vir 'n geruime tyd, tot dagbreek toe, met hulle gepraat en toe vertrek. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en was uitermate bemoedig. Ons het vooruit gegaan na die skip en weggevaar na Assos, waar ons beplan het om Paulus aan boord te neem, aangesien hy dit so gereël het, met die bedoeling om te voet daarheen te reis. Toe hy ons by Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene gevaar, waarvandaan ons die volgende dag weggevaar en reg oorkant Chios aangekom het. Die dag daarna het ons Samos bereik, en die daaropvolgende dag by Milete aangekom. Want Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in Asië hoef te bestee nie. Hy was gretig om, as dit kon, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees. Uit Milete het Paulus 'n boodskap na Efese gestuur en die ouderlinge van die •gemeente ontbied. Toe hulle by hom aankom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet dat ek vanaf die eerste dag toe ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was en hoe ek die Here gedien het, in alle nederigheid en met trane, en deur die beproewinge wat oor my gekom het as gevolg van die sameswerings van die Jode. Julle weet ook hoe ek nie nagelaat het om enigiets van dit wat vir julle voordelig is, aan julle te verkondig, en aan julle in die openbaar en in julle huise te onderrig nie, terwyl ek teenoor Jode sowel as Grieke kragtig getuig het van bekering tot God en geloof in ons Here Jesus. En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag. Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God. “En kyk, ek weet nou dat nie een van julle onder wie ek rondbeweeg en aan wie ek die koninkryk verkondig het, my weer sal sien nie. Daarom verklaar ek op hierdie dag van vandag aan julle dat ek onskuldig is aan julle almal se bloed; want ek het nie daarvan teruggedeins om die volle heilsplan van God aan julle te verkondig nie. Pas julleself op, en ook die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om die gemeente van God, wat Hy deur sy eie bloed verwerf het, herderlik te versorg. Ek weet dat wrede wolwe ná my vertrek julle geledere sal binnedring en die kudde nie sal spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar manne na vore kom wat verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. Wees daarom waaksaam, en onthou dat ek vir drie jaar lank, dag en nag, nie opgehou het om 'n ieder en 'n elk van julle met trane te waarsku nie. En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, 'n erfenis te gee. Silwer of goud of klere het ek van niemand begeer nie. Julle weet self dat ek met hierdie hande van my in my eie behoeftes voorsien het, en ook in dié van hulle saam met my. In alles het ek vir julle gewys dat 'n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ” Nadat hy dit gesê het, het hy saam met almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil, en Paulus omhels en hom gesoen. Hulle was veral bedroef oor die feit dat hy gesê het hulle sal hom nie weer sien nie. Toe het hulle hom na die skip vergesel. Nadat ons ons van hulle weggeskeur het, het ons weggevaar, reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag na Rodos gevaar, en daarvandaan na Patara. Daar het ons 'n skip gevind wat na Fenisië sou oorvaar, aan boord gegaan en weggevaar. Ons het binne sig van Ciprus gekom, maar dit aan ons linkerkant gelaat in ons verbyvaart na Sirië, en by Tirus aan wal gegaan, omdat die skip se vrag daar afgelaai sou word. Ons het die dissipels opgesoek en sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het onder leiding van die Gees vir Paulus gesê om nie na Jerusalem te gaan nie. Nadat ons die tyd daar deurgebring het, het ons vertrek en verder gereis. Almal, ook hulle vroue en kinders, het ons tot buitekant die stad begelei. Ons het op die strand gekniel en gebid. Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord van die skip gegaan, terwyl hulle na hulle huise teruggekeer het. Ons het ons reis van Tirus beëindig met ons aankoms by Ptolemaïs. Daar het ons die broers gaan groet en 'n dag lank by hulle oorgebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Caesarea aangekom. Ons het na die huis gegaan van die evangelis Filippus, een van die sewe, en by hom tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat oor die gawe van profesie beskik het. Terwyl ons 'n hele paar dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.’ ” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike mense Paulus gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. Daarop het Paulus geantwoord: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus. ” Omdat hy hom nie laat oorreed het nie, het ons geswyg en net gesê: “Laat die wil van die Here geskied.” Ná hierdie dae het ons gereedgemaak en na Jerusalem opgegaan. Van die dissipels uit Caesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons geneem na Mnason, 'n man uit Ciprus, en lank reeds 'n dissipel, by wie ons sou tuisgaan. Met ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang. Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus gegaan. Al die ouderlinge was ook teenwoordig. Nadat Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God deur sy bediening onder die heidene gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir hom gesê: “Jy sien, broer, hoeveel derduisende onder die Jode tot die geloof gekom het, en hulle beywer hulle almal vir die wet. Oor jou is vertel dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om afvallig te wees van Moses deur aan hulle te sê dat hulle nie hulle kinders hoef te besny en nie volgens die gebruike hoef te leef nie. Wat staan ons te doen? Hulle sal beslis hoor dat jy hier is. Doen dan wat ons vir jou sê. Hier is vier manne by ons wat 'n gelofte afgelê het. Neem hulle saam, laat jou saam met hulle reinig, en betaal vir hulle die koste om hulle koppe te laat skeer. Dan sal almal weet dat daar niks steek in wat van jou vertel word nie, maar dat jy self ook in gehoorsaamheid aan die wet leef. Wat betref die nie-Jode wat gelowig geword het, het ons besluit, en hulle skriftelik laat weet, dat hulle hulle moet onthou van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is, en van hoerery.” Toe het Paulus die manne saamgeneem, en die volgende dag saam met hulle die reiniging ondergaan. Daarna het hy die tempelterrein binnegegaan om die voltooiing van die dae van die reiniging aan te kondig, die dag wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word. Toe die sewe dae van die reiniging amper verstreke was, het Jode uit Asië hom op die tempelterrein gesien en die hele skare in oproer gebring. Hulle het hom gegryp en geskreeu: “Manne, Israeliete, kom help! Hier is die man wat oral vir almal dinge leer wat teen die volk en die wet en hierdie plek gerig is. Hy het boonop Grieke in die tempelterrein ingebring en hierdie heilige plek ontheilig! ” Want hulle het vir Trofimus, die Efesiër, voorheen saam met Paulus in die stad gesien, en gedink dat hy hom in die tempelterrein ingebring het. Die hele stad was in rep en roer, en daar het 'n samedromming van die volk ontstaan. Hulle het Paulus gegryp en hom uit die tempelterrein gesleep, en die poorte is dadelik gesluit. Terwyl hulle probeer het om hom dood te maak, het die berig dat die hele Jerusalem in oproer is die chiliarg van die kohort soldate bereik. Hy het onmiddellik met soldate en die centurio op hulle afgestorm. Toe hulle die chiliarg en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan. Daarop het die chiliarg nader gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Toe het hy navraag gedoen oor wie Paulus was en wat hy gedoen het. Sommige in die skare het een ding geskreeu en ander weer iets anders. Toe hy vanweë die rumoer nie sekerheid kon kry nie, het hy beveel dat Paulus na die kwartiere geneem word. Toe Paulus by die trappe kom, moes hy weens die geweld van die skare deur die soldate gedra word, want die volksmassa het agter hulle aan geloop en geskreeu: “Weg met hom!” Net toe hulle Paulus by die kwartiere wou inbring, sê hy vir die chiliarg: “Is dit my geoorloof om iets vir u te sê?” Die chiliarg antwoord: “Ken jy Grieks? Is jy dan nie die Egiptenaar wat kort gelede 'n opstand gelei en vierduisend manne van die Sikariërs na die woestyn uitgelei het nie?” Maar Paulus antwoord: “Ek is 'n Joodse man, afkomstig van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n nie te onbelangrike stad nie. Ek versoek u: Laat my toe om die volk toe te spreek.” Hy het dit toegelaat, en Paulus het op die trappe gaan staan en 'n handgebaar gemaak vir die volk. Toe het 'n groot stilte neergedaal en hy het hulle in die Hebreeuse taal toegespreek: “Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle.” Toe hulle hoor dat hy in die Hebreeuse taal met hulle praat, het hulle nog stiller geraak. Hy sê toe: “Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg deur mans sowel as vroue te boei en in die tronk te gooi, soos die hoëpriester en die hele Raad van Familiehoofde oor my kan getuig. Van hulle het ek selfs briewe aan die broers gekry, en na Damaskus gegaan om die mense daar as gevangenes na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. “ Terwyl ek egter nog op pad was en Damaskus genader het, het daar teen die middaguur skielik 'n helder lig uit die hemel rondom my geskyn. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ En ek het gevra, ‘Wie is U, Here?’ Hy het my geantwoord, ‘Ek is Jesus van Nasaret wat jy vervolg.’ Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek, ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê, ‘Staan op en gaan na Damaskus. Daar sal alles vir jou gesê word wat jou opgedra is om te doen.’ Omdat ek vanweë die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle aan die hand gelei, en so het ek in Damaskus aangekom. “'n Sekere Ananias, 'n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners goeie getuienis gelewer het, het na my gekom, en voor my kom staan en gesê, ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik kon ek hom sien. Toe het hy gesê, ‘Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, want jy sal voor alle mense vir Hom 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom aarsel jy nog? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy sy Naam aanroep.’ “Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ Toe het ek gesê, ‘Here, hulle weet dat dit ek is wat diegene wat in U glo, in die tronk laat gooi en in die •sinagoges laat slaan het. En toe die bloed vergiet is van Stefanus, u getuie, het ek self goedkeurend bygestaan en die boklere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’ En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ” Tot op hierdie punt het hulle na sy woorde geluister, maar toe hulle stemme verhef en uitgeroep: “Vat 'n man soos hierdie weg van die aarde af, want hy behoort nie te bly leef nie!” Terwyl hulle so skreeu, en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, het die chiliarg beveel dat Paulus in die kwartiere ingebring word. Hy gee toe opdrag dat hy onder geseling ondervra word, sodat hy kon vasstel om watter rede hulle so teen hom skreeu. Maar toe hulle hom al uitgestrek het met die rieme, sê Paulus vir die centurio wat daar staan: “Is dit julle geoorloof om 'n Romeinse burger te gesel, en dit sonder 'n verhoor?” Toe die centurio dit hoor, gaan hy na die chiliarg, meld dit aan en sê: “Wat is u van plan om te doen? Want hierdie man is 'n Romein!” Die chiliarg gaan toe na Paulus en vra hom: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord hy. Toe sê die chiliarg: “Ek het hierdie burgerskap teen 'n groot som geld bekom.” Daarop antwoord Paulus: “En ek deur geboorte.” Diegene wat gereed gestaan het om hom te ondervra, het hom daarom dadelik met rus gelaat, en ook die chiliarg het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is, en dat hy hom laat boei het. Die volgende dag het hy, omdat hy sekerheid wou kry oor waarvan Paulus deur die Jode aangekla word, hom vrygelaat en beveel dat die leierpriesters en die hele Sanhedrin moes vergader. Hy het Paulus laat inbring en hom voor hulle laat staan. Paulus het stip na die Sanhedrin gekyk en gesê: “Manne, broers, ek het tot op hierdie dag met 'n absoluut skoon gewete voor God geleef. ” Maar die hoëpriester Ananias het die mense wat langs hom gestaan het, opdrag gegee om hom op sy mond te slaan. Toe sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou witgekalkte muur! Jy sit daar om my kragtens die wet te beoordeel, terwyl dit jy is wat in stryd met die wet opdrag gee dat ek geslaan word? ” Die omstanders sê toe: “Beledig jy die hoëpriester van God?” En Paulus antwoord: “Broers, ek het nie besef hy is die hoëpriester nie. Daar staan tog geskryf, ‘Jy mag nie sleg praat van 'n leier van jou volk nie.’ ” Omdat Paulus geweet het dat sommige van hulle •Sadduseërs was en ander •Fariseërs, het hy in die Sanhedrin uitgeroep: “Manne, broers, ek is 'n Fariseër, die seun van Fariseërs! Op grond van die verwagting van die opstanding van die dooies word ek verhoor. ” Toe hy dit sê, het daar 'n stryery tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, en ook nie engele of geeste nie, terwyl die Fariseërs bely dat dit alles bestaan. 'n Groot geskreeu het toe ontstaan, en 'n paar van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs het opgestaan en hewig geprotesteer en aangevoer: “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie. Sê nou 'n gees of 'n engel het met hom gepraat?” Toe die stryery hewiger word, het die chiliarg gevrees dat hulle Paulus sou verskeur. Hy het toe bevel gegee dat sy afdeling soldate hom tussen hulle moet gaan uithaal en na die kwartiere bring. Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê: “Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig. ” Teen dagbreek het die Jode 'n komplot gesmee, en hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat aan hierdie sameswering deelgeneem het. Hulle het na die leierpriesters en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het 'n eed gesweer om niks te eet totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Rig júlle nou, saam met die Sanhedrin, 'n versoek aan die chiliarg om Paulus na julle te bring onder die voorwendsel dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is gereed om hom om die lewe te bring nog voor hy hier aankom.” Die seun van Paulus se suster het egter van die hinderlaag gehoor. Hy het na die kwartiere gegaan, toegang verkry en vir Paulus daarvan vertel. Paulus het een van die centurio's laat roep en gesê: “Neem hierdie jong man na die chiliarg, want hy het iets om hom te vertel.” Hy het hom toe saamgeneem, na die chiliarg gebring en gesê: “Die gevangene, Paulus, het my laat roep en gevra om hierdie jong man na u te bring, omdat hy iets het om aan u mee te deel.” Die chiliarg het hom aan die hand gevat, eenkant toe geneem en gevra: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te versoek dat u Paulus môre na die Sanhedrin moet laat bring onder die voorwendsel dat hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Moet u nie deur hulle laat oortuig nie, want meer as veertig van hulle manne gaan hom voorlê in 'n hinderlaag. Hulle het hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle hom om die lewe gebring het nie. Hulle staan reeds gereed, en wag net op u instemming.” Die chiliarg het die jong man toe laat gaan, nadat hy hom beveel het: “Moet niemand vertel dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.” Daarna het hy twee van sy centurio's laat roep en gesê: “Kry tweehonderd soldate gereed, saam met sewentig perderuiters en tweehonderd spiesvegters, sodat hulle teen die derde uur van die nag na Caesarea kan gaan. En sorg dat rydiere beskikbaar is, sodat hulle Paulus daarop kan vervoer en veilig na die prokurator Feliks kan bring.” Toe skryf hy 'n brief met die volgende inhoud: “Claudius Lisias aan die hooggeagte prokurator Feliks: Gegroet! “Hierdie man is deur die Jode gegryp, en hulle was op die punt om hom dood te maak, toe ek en my soldate daarop afgekom en hom gered het, omdat ek verneem het dat hy 'n Romeinse burger is. Aangesien ek die rede wou vasstel waarom hulle hom beskuldig het, het ek hom na hulle Sanhedrin gebring en vasgestel dat hy beskuldig word op grond van twispunte oor hulle wet, maar dat die aanklag teen hom niks inhou wat die dood of gevangenskap verdien nie. En toe ek meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee word, het ek hom dadelik na u gestuur. Ek het ook sy aanklaers beveel om hulle saak teen hom aan u voor te lê. ” Die soldate het Paulus toe saamgeneem soos hulle beveel is, en hom gedurende die nag na Antipatris gebring. Die volgende dag het hulle die perderuiters met hom laat saamgaan, en toe na die kwartiere teruggekeer. Toe hulle in Caesarea aankom, het hulle die brief aan die prokurator oorhandig en Paulus voor hom laat verskyn. Nadat Feliks die brief gelees het, het hy Paulus gevra uit watter provinsie hy afkomstig is, en toe hy verneem dat hy uit Silisië is, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers opdaag.” Hy het toe beveel dat Paulus in Herodes se pretorium bewaak word. Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met 'n paar familiehoofde, en ook 'n sekere Tertullus, 'n advokaat, daar aangekom. Hulle het hulle aanklag teen Paulus by die prokurator ingedien. Nadat Paulus ingeroep is, het Tertullus met die aanklag begin en gesê: “Deur u toedoen leef ons in groot vrede, en deur u voorsorgmaatreëls het daar verbeteringe vir hierdie volk gekom. Oral en in elke opsig verwelkom ons dit met alle dankbaarheid, hooggeagte Feliks. Ek wil u egter nie langer vermoei nie, en daarom doen ek 'n beroep op u welwillendheid om vir 'n kort tydjie na ons te luister. Ons het gevind dat hierdie man 'n pes is, en dat hy onder al die Jode in die wêreld onluste veroorsaak. Hy is 'n leier van die Nasarenersekte. Hy het ook probeer om die tempelterrein te ontheilig, en toe het ons hom gegryp. U sal self by hom kan agterkom waaroor ons hom aankla wanneer u hom oor al hierdie dinge verhoor. Die Jode het dit ondersteun en bevestig dat dit so is.” Toe die prokurator vir Paulus die teken gee dat hy mag praat, het hy geantwoord: “Omdat ek weet dat u al baie jare as regter optree oor hierdie volk, verdedig ek my saak met graagte. U kan u daarvan vergewis dat ek skaars twaalf dae gelede opgegaan het om in Jerusalem te aanbid. Hulle het my nie op die tempelterrein gevind waar ek besig was om met iemand te redeneer, of om 'n oproer onder die volk te veroorsaak in die •sinagoges of iewers in die stad nie. Hulle kan ook nie die dinge waarvan hulle my nou aankla, voor u bewys nie. Dit erken ek egter voor u: dat ek die God van ons voorvaders dien ooreenkomstig die Weg, waarna hulle as 'n sekte verwys. Ek glo alles wat volgens die Wet is en in die Profete geskryf staan. Ek vestig dieselfde hoop op God as waaraan hierdie mense ook vashou, naamlik dat daar 'n opstanding van die •regverdiges en ook die onregverdiges sal wees. Daarom doen ek self ook my uiterste bes om my gewete in alle opsigte skoon te hou voor God en die mense. Ná baie jare het ek hierheen gekom om geldelike hulp vir my volk te bring, en om te kom offer. Ek was besig hiermee, en het my al gereinig, toe hulle my op die tempelterrein aantref. Daar was nie 'n skare nie, en daar was ook nie oproer nie. Daar was wel 'n aantal Jode uit Asië, wat hier voor u moes verskyn het en my moes aankla, as hulle miskien iets teen my sou hê. Of laat hierdie mense self sê watter misdryf hulle gevind het toe ek voor die Sanhedrin gestaan het, behalwe as dit gaan oor hierdie een ding wat ek uitgeroep het toe ek tussen hulle gestaan het, ‘Ek staan vandag voor julle tereg oor die opstanding van die dooies!’ ” Feliks, wat goed vertroud was met die feite oor die Weg, het die verhoor verdaag en gesê: “Wanneer Lisias, die chiliarg, aankom, sal ek oor julle saak besluit.” Hy het die centurio opdrag gegee om Paulus aan te hou, maar om hom meer vryheid te gun en nie één van sy eie mense te verhinder om vir hom te sorg nie. 'n Paar dae later het Feliks saam met sy vrou Drusilla, 'n Jodin, gekom en Paulus laat haal en geluister na wat hy oor die geloof in Christus Jesus sê. Maar toe Paulus praat oor •geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel, het Feliks bang geword en gesê: “Jy kan maar vir eers gaan. As ek 'n geskikte geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” Hy het egter tegelykertyd gehoop dat Paulus hom geld sou aanbied, en daarom het hy hom herhaaldelik laat roep en met hom gepraat. Ná verloop van twee jaar is Feliks opgevolg deur Porcius Festus. Omdat Feliks die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus in boeie agtergelaat. Drie dae nadat Festus in die provinsie aangekom het, het hy van Caesarea af na Jerusalem opgegaan. Daar het die leierpriesters en die Joodse leiers 'n aanklag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het 'n beroep op hom gedoen en hom die guns gevra om Paulus na Jerusalem te laat haal, aangesien hulle 'n hinderlaag beplan het om hom onderweg dood te maak. Festus het egter geantwoord dat Paulus in Caesarea in aanhouding sou bly, maar dat hyself spoedig daarheen sou vertrek. “Laat diegene onder julle wat bevoeg is, dan saamgaan,” het hy gesê, “en laat hulle hom aankla as daar enigiets onwettigs by hierdie man te vinde is.” Hy het nie langer as agt tot tien dae by hulle gebly nie, en toe na Caesarea gegaan. Die volgende dag het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus gehaal word. Toe Paulus verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en baie en ernstige aanklagte teen hom ingebring, wat hulle nie kon bewys nie. Paulus het homself toe verdedig: “Ek het niks verkeerds gedoen nie, nie teen die wet van die Jode, of teen die •tempel, of teen die keiser nie.” Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en het Paulus geantwoord: “Wil jy opgaan na Jerusalem en daar voor my verhoor word oor hierdie dinge?” Paulus het egter geantwoord: “Voor die keiser se regbank staan ek tereg, en dit is waar ek verhoor moet word. Ek het nie die Jode veronreg nie, soos u self ook baie goed weet. As ek wel oortree het en iets gedoen het wat die dood verdien, probeer ek nie die dood vermy nie. Maar as daar niks steek in die dinge waarvan hulle my aankla nie, kan niemand my aan hulle oorgee nie. Ek beroep my op die keiser!” Nadat Festus met sy raad samesprekings gevoer het, het hy verklaar: “Op die keiser het jy jou beroep; na die keiser sal jy gaan!” Ná verloop van 'n paar dae het koning Agrippa en Bernice in Caesarea aangekom om aan Festus 'n beleefdheidsbesoek te bring. Aangesien hulle 'n hele paar dae daar deurgebring het, het Festus Paulus se saak aan die koning voorgelê en gesê: “Hier is 'n man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. Toe ek na Jerusalem gegaan het, het die leierpriesters en die familiehoofde van die Jode aanklagte teen hom ingedien en versoek dat hy veroordeel word. Ek het hulle geantwoord dat dit nie 'n Romeinse gebruik is om enige mens oor te lewer voordat die aangeklaagde die geleentheid gekry het om hom van aangesig tot aangesig voor sy aanklaers te verdedig teen die beskuldiging nie. Toe hulle dus hier bymekaargekom het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en beveel dat die man laat haal word. Die aanklaers het opgestaan, maar geen beskuldiging van die soort misdrywe wat ek verwag het, teen hom ingebring nie. Hulle het wel 'n aantal twisvrae aan hom gestel oor hulle godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is en van wie Paulus beweer dat Hy leef. Omdat ek nie raad geweet het met die ondersoek na hierdie sake nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan om daar op hierdie aanklagte tereg te staan. Maar aangesien Paulus hom daarop beroep het om in aanhouding te bly vir 'n beslissing deur Sy Majesteit, het ek beveel dat hy aangehou word totdat ek hom na die keiser kan stuur.” Agrippa het aan Festus gesê: “Ek sou self ook graag die man wou hoor.” Hy het geantwoord: “Môre sal jy hom hoor!” Die volgende dag het Agrippa en Bernice met groot vertoon opgedaag. Hulle het saam met die chiliarge en die vooraanstaande manne van die stad die ontvangsaal binnegegaan. Toe is Paulus op bevel van Festus na binne gebring. Daarop sê Festus: “Koning Agrippa, en al die mans hier saam met ons teenwoordig, kyk, hier is die man oor wie die hele skare Jode in Jerusalem, en ook hier, 'n beroep op my gedoen het, terwyl hulle luidkeels te kenne gegee het dat hy nie langer behoort te leef nie. Ek kon egter niks vind wat hy gedoen het om die dood te verdien nie, maar omdat hy hom op Sy Majesteit beroep het, het ek besluit om hom daarheen te stuur. Ek het egter niks konkreets om oor hom aan my heer te skryf nie. Daarom het ek hom voor julle laat verskyn, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná afloop van hierdie voorondersoek iets sou kon hê om te skryf. Dit lyk immers vir my onredelik om 'n gevangene aan te stuur sonder om die aanklagte teen hom aan te dui.” Agrippa het vir Paulus gesê: “Jy het vergunning om jou saak te stel.” Toe het Paulus sy hand uitgestrek en homself verdedig: “Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag voor u gaan verdedig teen alles waarvan ek deur die Jode aangekla is, veral omdat u op hoogte is van al die gebruike en strydvrae onder die Jode. Dus versoek ek u om geduldig na my te luister. Al die Jode weet hoe ek van die begin af, sedert my jeug, my lewe onder my volk in Jerusalem gelei het. Omdat hulle my van jongs af ken, sal hulle kan getuig, as hulle wil, dat ek volgens die strengste party in ons godsdiens, as •Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat deur God aan ons voorvaders gemaak is – die belofte wat ons twaalf stamme hoop om te verkry deurdat ons God dag en nag in alle erns dien. O koning, dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word. Waarom word dit deur julle as ongeloofbaar beskou dat God dooies opwek? Ek was self daarvan oortuig dat dit nodig is om baie vyandig op te tree teen die Naam van Jesus van Nasaret, wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die •heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. Deur hulle dikwels te laat straf in al die •sinagoges, het ek hulle probeer dwing om te laster. Ek was so rasend van woede teenoor hulle dat ek hulle selfs in stede in die buiteland vervolg het.” “Terwyl ek op 'n keer, in opdrag van die leierpriesters, en met hulle volmag, juis hiervoor na Damaskus op reis was, o koning, het ek langs die pad helder oordag 'n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat om my en my reisgenote skyn. Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek 'n stem wat vir my in die Hebreeuse taal sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en 'n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’ “Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die inwoners van Damaskus sowel as Jerusalem, en toe aan die hele landstreek van Judea en aan die heidene, verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle na God moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. Hieroor het die Jode my gegryp toe ek in die tempelterrein was, en het hulle my probeer doodmaak. Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.” Terwyl Paulus hierdie dinge ter verdediging aanvoer, roep Festus hardop uit: “Jy is waansinnig, Paulus! Jou groot geleerdheid dryf jou tot waansin!” Maar Paulus sê: “Ek is nie waansinnig nie, hooggeagte Festus, maar wat ek sê, spreek van waarheid en gesonde oordeel. Die koning begryp hierdie dinge; met hom kan ek vrymoedig praat. Want ek is daarvan oortuig dat niks hiervan hom ontgaan het nie, want dit het nie iewers in 'n uithoek plaasgevind nie. Koning Agrippa, glo u in die Profete? Ek weet u glo.” Toe sê Agrippa vir Paulus: “In 'n kort tydjie probeer jy my oorreed om 'n Christen te word?” Maar Paulus antwoord: “Of dit nou minder of meer verg, ek sou tot God wil bid dat nie net u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, mag word soos ek is, maar sonder hierdie boeie.” Toe het die koning opgestaan, en ook die prokurator en Bernice, en diegene wat saam met hulle daar gesit het. Hulle het uitgegaan en vir mekaar gesê: “Hierdie man doen niks wat die dood of gevangenskap verdien nie.” En Agrippa het vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie. ” Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was. Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter. Toe 'n ligte suidewind begin waai, het hulle gedink hulle kon hulle voorneme uitvoer. Hulle het die anker gelig en al langs die kus van Kreta verby beweeg. Maar dit was nie lank nie, of daar swiep van die land af 'n stormwind neer wat as die Eurakilon bekend staan. Omdat die skip meegesleur is en nie in staat was om teen die wind in te beur nie, het ons ons daaraan oorgegee en weggedryf. Toe ons aan die beskutte kant van 'n klein eilandjie bekend as Cauda kom, het ons met moeite daarin geslaag om die sloep onder beheer te kry. Nadat die bemanning die sloep opgehys het, het hulle toue onder die skip deurgetrek om dit te verstewig. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis sou strand, het hulle die dryfanker laat sak, en so het hulle weggedryf. Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is, het hulle die volgende dag begin om die skeepsvrag oorboord te gooi, en op die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is. Daar was 'n ernstige tekort aan kos. Toe het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie weggevaar het van Kreta af nie. Dan sou ons hierdie skade en verlies kon voorkom het. En nou roep ek julle op om moed te hou, want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal vergaan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, ‘Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.’ Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou op God dat dit net so sal gebeur soos aan my gesê is. Ons moet egter op een of ander eiland strand.” Teen die veertiende nag het ons steeds op die Adriatiese See rondgedryf. Om middernag het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het 'n peiling geneem, en gevind dat dit twintig vaam diep is. Hulle het 'n entjie verder gevaar en weer 'n peiling geneem, en gevind dat die diepte vyftien vaam is. Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle vier ankers van die skip se agterstewe afgegooi en gebid dat dit dag moet word. Toe die matrose probeer om van die skip af te vlug, en die sloep in die see neerlaat onder die voorwendsel dat hulle die ankers van die boeg af wou laat sak, het Paulus aan die centurio en die soldate gesê: “As hulle nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die sloep afgekap en dit laat val. Net voor dagbreek het Paulus by almal begin aandring om iets te eet. Hy het gesê: “Vandag is al die veertiende dag dat julle sonder kos bly wag en niks inneem nie. Daarom dring ek by julle daarop aan om voedsel in te neem, want dit sal bydra tot julle redding. Daar sal nie 'n haar van een van julle se kop verlore gaan nie. ” Nadat hy dit gesê het, het hy 'n stuk brood geneem, God voor almal gedank, die brood gebreek en begin eet. Almal het moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam tweehonderd ses-en-sewentig mense op die skip. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom. Nadat ons veiligheid bereik het, het ons agtergekom dat die eiland Melite genoem word. Die plaaslike bevolking het buitengewone vriendelikheid aan ons betoon. Weens die dreigende reën en koue het hulle 'n vuur aangesteek, en ons almal verwelkom. Paulus het 'n hoop droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit. Van die hitte het 'n slang uitgekom en aan sy hand vasgebyt. Toe die plaaslike bevolking die gedierte aan sy hand sien hang, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man is beslis 'n moordenaar. Hy is uit die see gered, maar Dike het nie toegelaat dat hy bly leef nie.” Paulus het egter die gedierte in die vuur afgeskud, en was ongedeerd. Hulle het verwag dat hy sal begin opswel, of skielik dood neerslaan. Maar nadat hulle lank gewag en gesien het dat niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê dat hy 'n god is. In die omgewing van daardie plek was daar landerye wat behoort het aan die hoofman van die eiland, 'n man met die naam Publius. Hy het ons verwelkom en drie dae lank gasvry gehuisves. Dit het so gebeur dat Publius se vader siek aan koors en diarree in die bed gelê het. Paulus het na hom gegaan en vir hom gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het die ander siekes op die eiland ook na hom gekom, en is gesond gemaak. Hulle het ons met eerbewyse oorlaai, en met ons vertrek vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het. Ná drie maande het ons vertrek met 'n skip wat by die eiland oorwinter het. Dit was 'n skip uit Aleksandrië, met die Dioskuri as boegbeeld. En nadat ons in Sirakuse anker gegooi het, het ons drie dae daar oorgebly; en daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium aangekom. Een dag later het 'n suidewind opgesteek, en ons het Puteoli op die tweede dag bereik. Daar het ons broers aangetref wat ons uitgenooi het om sewe dae lank by hulle te bly. En uiteindelik het ons Rome bereik. Die broers daar wat die dinge oor ons gehoor het, het ons by die Forum van Appius en die Drie Herberge kom ontmoet. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep. Toe ons in Rome aankom, is Paulus toegelaat om op sy eie te woon, met 'n soldaat wat hom bewaak het. Ná drie dae het hy die Joodse leiers saamgeroep. Toe hulle byeen was, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek uit Jerusalem as gevangene in die hande van die Romeine oorgelewer, wat my verhoor het en wou vrylaat, omdat daar in my geval geen gronde was vir die doodstraf nie. Omdat die Jode egter daarteen beswaar aangeteken het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep – nie dat ek iets het om my volk van te beskuldig nie. Om hierdie rede het ek gevra om julle te sien en met julle te praat, aangesien dit juis oor die hoop van Israel is dat ek hierdie boeie dra.” Toe sê hulle vir hom: “Ons het uit Judea geen briewe oor jou ontvang nie, en ook het nie een van die broers hier aangekom wat iets slegs oor jou berig of gesê het nie. Ons sal dit egter waardeer om by jou te hoor wat jy dink, want dit is aan ons bekend dat daar oral teen hierdie splintergroep gepraat word.” Nadat hulle met hom 'n dag afgespreek het, het hulle in 'n nog groter getal by hom in sy verblyfplek opgedaag. Hy het die •koninkryk van God aan hulle uitgelê, en van vroegoggend tot die aand kragtig daaroor getuig, terwyl hy hulle uit die Wet van Moses en die Profete probeer oortuig het oor Jesus. Sommige is oortuig deur sy woorde, maar ander het ongelowig gebly. In onenigheid onder mekaar het hulle uiteengegaan, nadat Paulus nog 'n enkele laaste woord gespreek het: “Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê: “ ‘Gaan na hierdie volk en sê: “Met die ore sal julle hoor, en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien, en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai, en Ek hulle genees nie.” ’ “Julle moet dan weet dat hierdie verlossing van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister. ” Paulus het 'n volle twee jaar in sy gehuurde huis gebly en almal wat na hom gekom het, ontvang. Hy het die koninkryk van God verkondig en hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig. Paulus, 'n dienskneg van •Christus Jesus, 'n geroepe •apostel, afgesonder vir die evangelie van God, wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het aangaande sy Seun – wat na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore is, wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die •Seun van God – Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het om tot eer van sy Naam mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring, onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is – aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Heel eerste dank ek my God deur Jesus •Christus oor julle almal, omdat julle geloof oor die hele wêreld verkondig word. God, wat ek met my hele wese dien deur die evangelie van sy Seun, is my getuie dat ek gedurig aan julle dink en altyd in my gebede smeek dat die pad nou uiteindelik vir my oopgemaak sal word, as dit die wil van God is, om na julle te kom. Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk – of eerder, dat wanneer ek by julle is, ons wedersyds deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle geloof en julle deur myne. Ek wil nie hê dat julle hieroor onkundig moet wees nie, broers, dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom – alhoewel ek tot nou toe verhinder is – sodat ek ook onder julle 'n vrug kan verkry soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyses sowel as onverstandiges, staan ek in die skuld – vandaar my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig. Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare drange, want hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. Net so het ook die mans die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar en vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang. En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan 'n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos en sonder medelye – mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen. Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen. Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen. Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie? Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word. “Hy sal elkeen beloon volgens sy dade:” die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid, maar toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Verdrukking en benoudheid wag vir elke mens wat aanhou kwaad doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. Maar heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie. Almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan, maar almal wat binne die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word. Dit is tog nie die blote hoorders van die wet wat voor God regverdig is nie, maar dit is die daders van die wet wat geregverdig sal word. Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle nie die wet nie. Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig, op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens, volgens my evangelie, deur •Christus Jesus sal oordeel. Jy noem jouself tog 'n Jood, jy maak staat op die wet en jy beroem jou op God. Jy ken sy wil en onderskei die dinge wat saak maak, omdat jy uit die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir diegene in die duisternis, 'n leermeester vir die onkundiges, 'n onderwyser vir klein kindertjies, omdat jy in die wet die beliggaming van kennis en waarheid het. Jy dan, wat iemand anders onderrig, onderrig jy nie jouself nie? Jy wat verkondig dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy self? Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy egbreuk? Jy wat die afgode verafsku, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou beroem op die wet, jy doen God oneer aan deur die wet te oortree. Want “die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster”, soos daar geskryf staan. Die besnydenis is inderdaad van nut as jy die wet nakom, maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword. En as onbesnede mense die voorskrifte van die wet uitvoer, sal hulle onbesnedenheid dan nie tot besnedenheid gereken word nie? Boonop sal die mense wat van nature onbesnede is en tog die wet nakom, oordeel oor jou, wat ten spyte van die letter van die wet en die besnydenis 'n wetsoortreder is. Want om 'n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik 'n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God. Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Baie, in elke opsig. Want in die eerste plek is die woorde van God aan hulle toevertrou. Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan, “sodat U reg bewys kan word deur u woorde, en U sal wen wanneer U oordeel”. Maar as ons ongeregtigheid die regverdigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God dan onregverdig – ek redeneer nou soos 'n mens – wanneer Hy sy toorn oor ons bring? Hoegenaamd nie! Want hoe sal God dan oor die wêreld oordeel? Maar as deur my valsheid God se waarheid oorvloedig blyk, tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? Moet ons nie sê – soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” nie? Tereg verdien sulke mense hulle veroordeling. Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. Is daar dan nog sprake van roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Die wet van die werke? Nee, deur die wet van die geloof. Ons is immers daarvan oortuig dat 'n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet. Of is God net die God van Jode? Is Hy nie ook God van nie-Jode nie? Ja, ook van nie-Jode, aangesien dit een God is wat besnedenes op grond van die geloof regverdig sal verklaar, en ook onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan deur die geloof die wet ongeldig? Hoegenaamd nie! Trouens, ons bevestig die wet. Wat sal ons dan sê het Abraham, ons stamvader na die liggaam, verkry? As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. Want wat sê die Skrif? “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Iemand wat werk, se loon word nie as 'n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: “Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” Is hierdie seën dan net vir die besnedenes, of ook vir die onbesnedenes? Ons sê tog: “Abraham se geloof is vir hom as regverdiging gereken.” Wanneer is dit vir hom toegereken? Toe hy reeds besnede was, of toe hy nog onbesnede was? Nie toe hy besnede was nie, maar toe hy onbesnede was. Hy het die teken van die besnydenis as 'n seël ontvang – 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy gehad het terwyl hy onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat dit ook vir hulle as regverdiging toegereken kon word. So het hy ook die vader geword van hulle wat nie bloot besnede is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo het toe hy nog onbesnede was. Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die •geregtigheid van die geloof. Immers, as mense op grond van die wet erfgename is, het die geloof betekenisloos geword en die belofte sy krag verloor. Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie. Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek. Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot •vryspraak van baie oortredings gelei. Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie een mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang, ja, die gawe van sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer. Daarom dan, soos daar deur die oortreding van een mens veroordeling oor alle mense gekom het, so het daar ook deur die een mens se gehoorsame optrede vir alle mense regverdiging tot die lewe gekom. Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie mense tot sondaars gemaak is, so ook sal deur die gehoorsaamheid van die Een baie mense geregverdig word. Die wet het daarby gekom, met die gevolg dat die oortreding toegeneem het; maar namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here. Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef? Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God. Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword – ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie. Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here. Of weet julle dan nie, broers – ek praat immers met mense wat die wet ken – dat die wet seggenskap het oor die mens vir so lank as wat hy leef nie? Volgens die wet is die getroude vrou tog aan haar man verbonde terwyl hy nog leef; maar as die man sterf, is sy onthef van die wet ten opsigte van haar man. Gevolglik sal sy as 'n egbreekster beskou word as sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man nog leef; maar as haar man sterf, is sy vrygestel van die wet; en as sy 'n ander man se vrou word, is sy nie 'n egbreekster nie. Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra. Toe ons nog in ons sondige aard vasgevang was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons ledemate gewerk om vrug te dra vir die dood. Maar aangesien ons gesterf het, is ons nou vrygestel van die wet waarin ons vasgevang was, sodat ons diensbaar kan wees in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie. Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Nadat die sonde deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het dit allerlei begeertes in my gewek, want sonder die wet is die sonde dood. Destyds, sonder die wet, was ék lewendig; maar toe die gebod gekom het, het die sonde lewe gekry, en ek het gesterf en gevind dat die gebod wat na die lewe moes lei, na die dood gelei het. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my mislei en my deur die gebod doodgemaak. So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed. Het dit wat goed is, dan vir my die dood gebring? Hoegenaamd nie! Trouens, dit was die sonde – sodat dit sou blyk dat dit werklik sonde is – wat deur die goeie vir my die dood bewerk het. So het die sonde deur die gebod as uitermate sondig na vore getree. Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, maar ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? Aan God die dank – deur Jesus •Christus, ons Here! So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde. Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van 'n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie. Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Julle het immers nie 'n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “ Abba, Vader!” Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die •heiliges intree. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is; want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die •Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook •vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat •vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here. Ek praat die waarheid in •Christus – ja, ek lieg nie – en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my dat ek in my hart 'n ontsaglike droefheid en 'n onophoudelike pyn ervaar. Ek sou inderdaad wou bid om self vervloek te wees, verwyder van Christus, in belang van my broers, my volksgenote na die liggaam. Hulle is Israeliete; aan hulle behoort die aanneming tot kinders, die heerlikheid, die verbonde, die wetgewing, die tempeldiens en die beloftes; aan hulle behoort die voorvaders, en uit hulle het ook die Christus as mens gekom – Hy wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig! •Amen. Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou. Want dít is die woord van die belofte: “Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara 'n seun hê.” Dit is nie al nie. Ook Rebekka het uit net een man swanger geword, naamlik uit ons voorvader Isak, Soos daar geskryf staan: “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek 'n afkeer gehad.” Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie ook al Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie ook al Ek barmhartig wil wees.” Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die Skrif sê immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil. Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode. So sê Hy ook in Hosea: “Hulle wat nie my volk was nie, sal Ek my volk noem, en haar wat nie geliefd was nie, sal Ek my geliefde noem.” En: “Op daardie plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is nie my volk nie,’ juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.” Maar Jesaja roep aangaande Israel uit: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, sal net 'n oorblyfsel verlos word; want die Here gaan 'n volledige en spoedige afrekening op die aarde hou.” En soos Jesaja reeds gesê het: “As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n nageslag laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, en sou dit met ons soos met Gomorra gegaan het.” Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die •geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiging deur die geloof, terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, soos daar geskryf staan: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle verlos mag word. Ek kan inderdaad vir hulle getuig dat hulle God met ywer dien, maar sonder insig. Omdat hulle die •geregtigheid wat van God af kom, nie begryp nie, en probeer om hulle eie geregtigheid tot stand te bring, het hulle hulle nie onderwerp aan die geregtigheid wat van God af kom nie. Die einddoel van die wet is immers •Christus, tot regverdiging van elkeen wat glo. Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om •Christus af te bring – “of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Dit maak inderdaad geen verskil of jy 'n Jood of 'n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!” Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus. Ek vra egter: “Het hulle dit dan nie gehoor nie?” Inderdaad, want: “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan, en hulle woorde tot by die uithoeke van die bewoonde wêreld.” Ek vra weer: “Het Israel dit dan nie verstaan nie?” Eers sê Moses: “Ek gaan julle jaloers maak op mense wat geen volk is nie; oor 'n onkundige volk gaan Ek julle kwaad maak.” En Jesaja gaan selfs so ver om te sê: “Ek is gevind deur diegene wat nie na My gesoek het nie; Ek het verskyn aan diegene wat nie na My gevra het nie.” Maar van Israel sê hy: “Die hele dag deur het Ek my hande uitgestrek na 'n ongehoorsame en opstandige volk.” My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. “God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel? “Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” Maar wat is God se antwoord aan hom? “Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie.” Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, soos daar geskryf staan: “God het aan hulle 'n trae gees gegee, oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie, tot op die dag van vandag.” En Dawid sê: “Laat hulle etenstafel 'n valstrik en 'n vangnet word, 'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie, laat hulle rûe vir altyd krom buig.” Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal! Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood! As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie, maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie! Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen. Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is. Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen. Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here. Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.” Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie. Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal 'n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is 'n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers 'n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir die straf nie, maar ook ter wille van jou gewete. Daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom. Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, het die wet vervul. Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet. Boonop ken julle die bestemde tyd – dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word – ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en trek die wapenrusting van die lig aan. Kom ons leef betaamlik, soos in die dag – nie met gefuif en dronkenskap nie, nie met ontug en losbandigheid nie, nie met rusie en afguns nie. Beklee julle egter met die Here Jesus •Christus; en maak nie voorsiening vir julle sondige aard om sy drange te bevredig nie. Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir 'n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. Die een wat 'n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely. ” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen. Daarom, kom ons veroordeel mekaar nie meer nie. Maak dit eerder julle voorneme om nie vir julle broer 'n rede tot aanstoot of struikeling te verskaf nie. Ek weet – ja, ek is in die Here Jesus daarvan oortuig – dat niks vanself •onrein is nie. As iemand iets egter as onrein beskou, dan is dit vir hom onrein. As jy jou broer aanstoot gee deur wat jy eet, handel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie •Christus gesterf het, ten gronde laat gaan nie. Moenie toelaat dat die goeie wat daar by julle is, 'n slegte naam kry nie. Die •koninkryk van God is tog nie 'n saak van kos en drank nie, maar van •geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Wie Christus op hierdie manier dien, is aanneemlik vir God en aanvaarbaar by die mense. Kom ons streef dan na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder. Moenie ter wille van kos die werk van God tot niet maak nie. Alles is rein, maar dit is verkeerd om aanstoot te gee deur wat jy eet. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink, of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie. Hou vas aan die oortuiging wat jy by jouself voor God het. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel oor wat hy as toelaatbaar beskou nie. Hy wat egter twyfel wanneer hy eet, staan al klaar veroordeel, omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde. Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om die swakhede te dra van diegene wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. •Christus het tog ook nie Homself behaag nie, maar, soos daar geskryf staan: “Die beledigings van hulle wat U beledig, het My getref.” Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang. En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. Daarom, aanvaar mekaar, soos •Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek sê vir julle dat Christus 'n Dienaar van die besnedenes geword het ter wille van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig, en die nasies God oor sy ontferming kan verheerlik, soos daar geskryf staan: “Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.” En daar staan ook: “Wees bly, nasies, saam met sy volk.” En weer: “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” En Jesaja sê op sy beurt: “Daar sal 'n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees. My broers, persoonlik is ek daarvan oortuig dat julle ook self vol goedheid is en oor volledige kennis beskik, in dié mate dat julle mekaar ook kan reghelp. Tog het ek oor sekere sake nogal vrymoedig aan julle geskryf om julle daaraan te herinner dat ek, deur die genade wat God my gegee het, 'n bedienaar van •Christus Jesus aan die heidene is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik, sodat die heidene 'n aanneemlike offer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees. Dit is dan waarop ek my in Christus Jesus beroem: dat ek hierdie offer aan God kan bring. Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie – deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum. So het ek my dit ten doel gestel om die evangelie te verkondig, nie waar Christus reeds bekend was en ek dus op iemand anders se fondament sou bou nie, maar, soos daar geskryf staan: “Hulle wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en hulle wat nie gehoor het nie, sal verstaan.” Daarom is ek ook dikwels verhinder om by julle uit te kom. Maar noudat ek nie meer plek in hierdie streke het nie, en reeds vir baie jare die begeerte het om by julle uit te kom, sal ek dit doen wanneer ek na Spanje onderweg is. Want ek hoop om julle op my deurreis te sien, en dan deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers vir 'n tydjie die samesyn met julle geniet het. Maar nou is ek vir eers op pad na Jerusalem in diens van die •heiliges. Macedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om 'n bydrae te maak vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, en was dit bowendien aan die heiliges verskuldig. As die heidene in hulle geestelike seëninge gedeel het, is hulle dit tog ook aan die heiliges in Jerusalem verskuldig om hulle met materiële seëninge te bedien. As ek dit dan afgehandel en die opbrengs veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje reis. En ek weet dat wanneer ek na julle kom, dit sal wees met die volle seën van •Christus. Ek smeek julle dan dringend, broers, by ons Here Jesus Christus en die liefde van die Gees, om deur julle gebede tot God saam te stry vir my, sodat ek gered sal word van die ongelowiges in Judea, en dat my diens aan Jerusalem vir die heiliges daar aanvaarbaar sal wees. So sal ek dan, as dit God se wil is, met blydskap na julle kom en by julle verfris word. Mag die God van vrede met julle almal wees. •Amen. Ek beveel ons suster Febe by julle aan, wat 'n dienares in die •gemeente van Kenchreë is. Ontvang haar in die Here, soos dit die •heiliges betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle nodig mag kry. Sy was 'n ware weldoener vir baie mense, en ook vir my. Groet Priska en Akwila, my medewerkers in •Christus Jesus. Hulle het hulle lewens vir my op die spel geplaas. Dis nie net ek wat teenoor hulle dankbaar is nie, maar ook al die gemeentes onder die heidene. Groet ook die gemeente by hulle aan huis. Groet my geliefde Epenetus – hy is die eersteling in Christus uit die provinsie Asië. Groet Maria, wat so hard vir julle gewerk het. Groet Andronikus en Junia, my volksgenote en medegevangenes. Hulle is hoog aangeskrewe by die •apostels en wat reeds voor my in Christus was. Groet Ampliatus, my geliefde vriend in die Here. Groet ook Urbanus, ons medewerker in Christus, en my geliefde Stagis. Groet Apelles, wat in Christus beproef is, en groet ook diegene uit die familie van Aristobulus. Groet Herodion, my volksgenoot. Groet diegene uit die familie van Narsissus wat in die Here is. Groet Trifena en Trifosa, harde werkers vir die Here. Groet ook my geliefde Persis, wat baie hard vir die Here gewerk het. Groet Rufus, uitverkorene in die Here, sowel as sy moeder, wat ook vir my 'n moeder was. Groet Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas, en die broers wat saam met hulle is. Groet Filologus en Julia, Nereus en sy suster Olimpas, en al die •heiliges saam met hulle. Groet mekaar met 'n heilige soen. Al die gemeentes van •Christus groet julle. Ek doen 'n beroep op julle, broers, om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is. Bly weg van hulle af. Want hierdie soort mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie maag. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense. Julle gehoorsaamheid is aan almal bekend. Daarom is ek bly oor julle, en ek wil hê dat julle wys sal wees ten opsigte van die goeie, en onskuldig ten opsigte van die kwaad. Die God van vrede sal Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus bly met julle! Timoteus, my medewerker, groet julle; so ook Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote. Ek, Tertius, wat hierdie brief neergeskryf het, groet julle in die Here. Gaius, my en die hele gemeente se gasheer, groet julle. Erastus, die stadstesourier, groet julle, ook die broer Kwartus. Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle almal. •Amen. Aan Hom wat magtig is om julle te versterk, volgens die evangelie van Jesus •Christus wat ek verkondig, en volgens die openbaring van die misterie, wat eeue lank verswyg was, maar wat nou in opdrag van die Ewige God deur die geskrifte van die profete onthul en aan alle nasies bekend gemaak is, om hulle tot geloofsgehoorsaamheid te bring – aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! •Amen. Paulus, deur die wil van God 'n geroepe •apostel van •Christus Jesus, en die broer Sostenes, aan die •gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in •Christus Jesus. Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here. Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie. Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Want daar staan geskryf: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense. Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies – dit wat niks is – om wat wél iets was, tot niet te maak, sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.” Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het, het ek nie gekom om met verhewe woorde of wysheid God se geheimenis aan julle te verkondig nie. Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus •Christus, en Hom as gekruisigde. Daarby het ek in swakheid na julle toe gekom, vol vrees en bewing. My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende woorde van wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag, sodat julle geloof nie op die wysheid van mense berus nie, maar op die krag van God. Vir diegene wat volwasse is in geloof, is wat ons sê, wel wysheid – nie die wysheid van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers nie. Hulle gaan in elk geval tot niet. Ons praat egter van God se wysheid wat in 'n misterie gehul was, maar wat Hy voor alle tye vir ons heerlikheid bestem het, en wat nie een van die heersers van hierdie wêreld geken het nie; want as hulle het, sou hulle nie die Here van heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskryf staan: “Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet.” Maar aan ons het God dit deur die Gees geopenbaar; want die Gees ondersoek alles, ook die dieptes van God. Want watter mens ken die dieptes van 'n mens, behalwe sy eie gees in hom? Net so ken niemand die dieptes van God nie, behalwe die Gees van God. Ons het tog nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat van God kom, sodat ons kan weet wat God genadiglik aan ons geskenk het. Ons praat ook oor hierdie dinge, nie met woorde wat menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer, terwyl ons geestelike dinge met geestelike dinge beoordeel. Maar 'n niegeestelike mens aanvaar nie wat van die Gees van God kom nie; vir hom is dit immers dwaasheid, en hy kan dit nie begryp nie, omdat dit slegs geestelik beoordeel kan word. Die geestelike mens beoordeel egter alle dinge, hoewel hyself deur niemand beoordeel kan word nie. “Want wie het die gedagte van die Here geken, om vir Hom te kan voorskryf?” Wat ons betref, ons het die denkwyse van •Christus. Wat my betref, broers, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies, in •Christus. Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie, want julle is steeds wêrelds. Waar daar onder julle afguns en onenigheid is, is julle dan nie wêrelds, en gedra julle julle dan nie soos wêreldse mense nie? Elke keer as een van julle sê, “Ek is van Paulus,” en 'n ander, “Ek van Apollos,” is julle nie wêreldse mense nie? Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk. Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus •Christus. Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle. Laat niemand homself bedrieg nie. As iemand onder julle in hierdie wêreld meen dat hy wys is, laat hy dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan immers geskryf: “Hy vang die wyses deur middel van hulle eie slinksheid;” en ook: “Die Here ken die redenasies van die wyses, dat dit niksseggend is.” Daarom moet niemand hulle op mense beroem nie. Alles behoort tog aan julle: Of dit Paulus of Apollos of Sefas, of die wêreld, of lewe of dood, of teenswoordige of toekomstige dinge is – alles behoort aan julle. Maar julle behoort aan •Christus, en Christus aan God. Só moet mense ons beskou: as diensknegte van •Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God. Boonop word van sulke bedienaars verwag dat elkeen van hulle getrou bevind sal word. Vir my is dit nie 'n belangrike saak of ek deur julle of deur enige menslike regbank beoordeel word nie; trouens, ek beoordeel nie eers myself nie. Ek is nie bewus van enigiets teen my nie, maar dit beteken nie dat ek regverdig is nie. Hy wat my beoordeel, is die Here. Gevolglik moet julle nie reeds oordeel voordat die Here kom nie. Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Dan sal elkeen afsonderlik van God lof ontvang. Hierdie dinge, broers, het ek om julle onthalwe op myself en Apollos van toepassing gemaak, sodat julle deur ons kan leer om julle nie te verhef bo wat geskryf is nie, sodat niemand homself belangrik sal ag omdat hy vir die een is en teen 'n ander nie. Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie? Julle is mos reeds versadig! Julle is reeds ryk! Sonder ons het julle soos konings begin regeer. Het julle maar waarlik regeer, sodat ons saam met julle kon regeer! Dit lyk vir my of God ons •apostels as die heel laastes aangewys het, asof ons ter dood veroordeel is, omdat ons 'n skouspel geword het vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus; ons is swak, maar julle sterk; julle geëerd, maar ons sonder eer. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is karig geklee, word geslaan, swerf dakloos, en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons; word ons belaster, antwoord ons beleefd. Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe. Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys. Want selfs al het julle 'n menigte opvoeders in •Christus, het julle nie baie vaders nie. Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword. Ek doen dus 'n ernstige beroep op julle: Volg my voorbeeld! Om hierdie rede het ek Timoteus, my geliefde en getroue kind in die Here, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my lewenswyse in Christus Jesus, soos wat ek oral, in elke •gemeente, onderrig gee. Sommige van julle het verwaand geword, asof julle aangeneem het dat ek nie na julle kom nie; maar as die Here wil, sal ek binnekort na julle kom. Dan sal ek die verwaandes se krag leer ken, en nie net hulle gepraat nie; want die •koninkryk van God bestaan nie uit 'n gepraat nie, maar uit krag. Wat verkies julle? Dat ek met 'n slaanstok na julle kom, of in liefde en 'n gees van sagmoedigheid? 'n Mens hoor werklikwaar van onsedelikheid onder julle, en dan 'n soort seksuele losbandigheid wat selfs nie onder die heidene geduld word nie – dat 'n man met sy vader se vrou saamleef. Tog is julle steeds hoogmoedig! Moes julle nie eerder treur, en toesien dat hy wat hierdie daad gepleeg het, uit julle midde verwyder word nie? Wat my betref, alhoewel ek liggaamlik afwesig is, is ek in die gees by julle. Asof teenwoordig, het ek reeds die man wat so 'n ding gedoen het, geoordeel. Julle grootpratery is nie mooi nie. Weet julle dan nie dat 'n klein bietjie suurdeeg die hele mengsel deursuur nie? Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, •Christus, is geslag. Laat ons daarom feesvier, nie met ou suurdeeg, die suurdeeg van kwaad en boosheid nie, maar met die ongesuurde brood van opregtheid en waarheid. Ek het in my brief aan julle geskryf om nie met hoereerders te meng nie. Daarmee het ek beslis nie die hoereerders van hierdie wêreld bedoel nie, of die gierigaards en rowers of afgodedienaars nie, want dan sou julle uit die wêreld moes weggaan. Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar 'n hoereerder of 'n gierigaard is, of 'n afgodedienaar of 'n kwaadprater of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle nie eers saam eet nie. Waarom sou ek die buitestanders oordeel? Moet julle nie eerder diegene in julle eie geledere oordeel nie? God sal die buitestanders oordeel. “Verwyder die slegte mens uit julle midde.” Hoe durf enigeen van julle wat 'n klag teen 'n ander het, dit deur die onregverdiges laat besleg en nie deur heiliges nie? Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie? Hoeveel te meer die dinge van die alledaagse lewe? As julle 'n regsgeding oor alledaagse sake het, laat julle dit besleg deur mense wat geen aansien in die •gemeente het nie? Ek sê hierdie dinge om julle te beskaam. Is daar dan nie eers een wyse onder julle wat in staat is om reg te spreek oor sy broer nie? Maar daag 'n gelowige 'n medegelowige eerder voor die hof, en dit voor ongelowiges? Dit is reeds 'n volslae nederlaag vir julle dat julle hofsake teen mekaar maak. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie besteel nie? Maar júlle besteel en pleeg onreg, en dit nogal teenoor broers. Weet julle nie dat onregverdiges die •koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus •Christus en deur die Gees van ons God. “Alles is my geoorloof,” maar nie alles is voordelig nie. “Alles is my geoorloof,” maar ek sal my deur niks laat oorheers nie. “Kos is vir die maag en die maag vir kos,” maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam. Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek. Weet julle nie dat julle liggame ledemate van •Christus is nie? Sal ek dan die ledemate van Christus neem en deel maak van 'n prostituut? Beslis nie! Of weet julle nie dat iemand wat met 'n prostituut gemeenskap het, een liggaam met haar word nie? Daar staan immers: “Die twee sal een liggaam wees.” Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom. Vlug weg van onsedelikheid. Elke sonde wat 'n mens doen, is buite sy liggaam, maar iemand wat seksueel losbandig optree, sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam. Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir 'n man om nie met 'n vrou omgang te hê nie.” Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir 'n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie. Dit sê ek as toegewing, nie as voorskrif nie. Ek wens alle mense kon soos ek wees; maar elkeen het 'n eie gawe van God ontvang, die een dit, die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. Aan dié wat getroud is, gee ek die opdrag – nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, laat sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. 'n Man mag ook nie van sy vrou skei nie. Maar aan die ander sê ek – nie die Here nie: As 'n broer 'n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, en 'n vrou met 'n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders •onrein wees, maar nou is hulle heilig. As die ongelowige egter wil skei, laat hy skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie? Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die •gemeentes. Iemand wat besny was toe hy geroep is, moet dit nie ongedaan laat maak nie. Iemand wat onbesny was toe hy geroep is, moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis beteken nie iets nie, die onbesnedenheid beteken nie iets nie, maar wel die gehoorsaamheid aan God se gebooie. Laat elkeen bly in die situasie waarin hy was toe hy geroep is. Is jy geroep toe jy 'n slaaf was, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as 'n vry mens geroep is, 'n slaaf van •Christus. Julle is duur gekoop; moenie langer slawe van mense wees nie. Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is. Wat maagdelikheid betref, het ek nie 'n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir 'n mens goed is om te bly soos jy is. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan 'n vrou verbonde nie, moenie 'n vrou soek nie. As jy egter trou, sondig jy nie, en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry – en dit wil ek julle spaar. Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie; wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy maagd optree, as sy begeerte te groot word, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer; hy sondig nie – laat hulle trou. Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is – nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil – en in sy hart besluit om sy maagd te eerbiedig, tree reg op. Daarom tree hy wat met sy maagd trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree. 'n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef; maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het. Wat die afgodsoffers betref, stem ons saam: “Ons het almal kennis.” Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand dink hy weet iets, is sy kennis nog nie soos dit behoort te wees nie. Maar as iemand God liefhet, word hy deur Hom geken. Wat die eet van afgodsoffers betref, weet ons “Daar bestaan geen afgod in die wêreld nie,” en “Daar bestaan geen god nie, behalwe Een.” Selfs al is daar inderdaad sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so ook baie “gode” en baie “here” – Vir ons egter is daar een God, die Vader, uit wie alles is, en ons vir Hom, en een Here, Jesus •Christus, deur wie alles is, en ons deur Hom. Maar nie almal het hierdie kennis nie. Sommige is nog so gewoond aan die afgod dat hulle steeds die vleis eet as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel. Kos bring ons nie nader aan God nie. As ons nie sou eet nie, ly ons nie gebrek nie, en as ons sou eet, het ons nie oorvloed nie. Pasop dat hierdie vryheid van julle nie vir die swakkes 'n struikelblok word nie. Want as iemand jou, wat die kennis het, in 'n afgodstempel aan tafel sien, sal hy nie, omdat sy gewete swak is, aangemoedig word om afgodsoffers te eet nie? Dan gaan die swakke, 'n broer vir wie Christus gesterf het, verlore as gevolg van jou kennis. Deur op dié manier teen die broers te sondig en hulle swak gewetens te kwets, sondig julle teen Christus. Daarom, as kos my broer laat struikel, sal ek beslis vir ewig nie weer vleis eet nie, sodat ek nie my broer laat struikel nie. Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n •apostel nie? Het ek dan nie Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle nie my handewerk in die Here nie? Al is ek nie vir ander 'n apostel nie, is ek dit tog vir julle, want julle is die waarmerk van my apostelskap in die Here. My verweer teenoor diegene wat my kritiseer, is dit: Het ons dan nie die reg om te eet en te drink nie? Het ons nie ook die reg om 'n suster as vrou saam op reis te neem, soos die ander apostels, en die broers van die Here en Sefas nie? Of het net ek en Barnabas nie die reg om nie te werk nie? Wie dien dan ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ooit 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas ooit 'n kudde op en geniet nie van die kudde se melk nie? Ek sê dit nie net menslikerwys nie; sê die wet nie dieselfde nie? Want in die •Wet van Moses staan daar geskryf: “Jy mag 'n bees wat graan trap, nie muilband nie.” Is God nou besorg oor beeste, of sê Hy dit eintlik ter wille van ons? Ja, ter wille van ons is daar geskryf: “Wie ploeg, moet met verwagting ploeg, en wie oes, moet oes met die verwagting om daarin te deel.” As ons dan vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit te veel gevra dat ons die materiële van julle mag oes? As ander in hierdie aanspraak op julle deel, hoeveel te meer nie ons nie? Tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie. Ons verdra eerder alles, sodat ons geen hindernis vir die evangelie van •Christus veroorsaak nie. Weet julle nie dat hulle wat in die •tempel werk, uit die tempel eet, en hulle wat die altaar bedien, 'n deel van die offerande kry nie? So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef. Maar ek het nie van een van hierdie regte gebruik gemaak nie, en ek skryf ook nie hierdie dinge sodat dit op my van toepassing moet wees nie. Ek sterf eerder as dat iemand my dié roem ontneem! Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers 'n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. As ek dit uit vrye wil doen, is daar vir my beloning; as ek dit egter nie uit vrye wil doen nie, doen ek dit as 'n taak wat aan my toevertrou is. Wat is my beloning dan? Dat ek deur my verkondiging die evangelie gratis aanbied, sonder om van die regte wat met die verkondiging saamgaan, ten volle gebruik te maak. Want hoewel ek vry is van almal, het ek almal se slaaf geword, om soveel mense as moontlik te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword, om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen. Vir diegene sonder die wet, het ek soos iemand sonder die wet geword – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar juis onder die wet van Christus – om hulle wat sonder die wet is, te wen. Vir die swakkes het ek swak geword, om die swakkes te wen; vir almal het ek alles geword, sodat ek ten minste sommige kan red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ook ek daarin mag deel. Weet julle nie dat die atlete wat in 'n stadion aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang. Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om 'n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie. Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie. Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie: Ons voorouers was almal onder die wolk, en het almal deur die see gegaan, en in verbondenheid met Moses, is almal in die wolk en in die see gedoop, en almal het dieselfde geestelike kos geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was •Christus. Nogtans het God in die meeste van hulle nie 'n behae gehad nie, want hulle liggame is in die woestyn verstrooi. Hierdie dinge het gebeur as 'n voorbeeld vir ons, sodat ons nie na bose dinge sal hunker, soos hulle ook gehunker het nie. Moenie afgodedienaars wees, soos sommige van hulle nie; daar staan immers geskryf: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en opgestaan om te speel.” Laat ons dan nie onsedelik optree, soos sommige van hulle onsedelik opgetree het nie – daar het op een dag drie-en-twintigduisend gesterf. Laat ons nie vir Christus beproef, soos sommige van hulle Hom beproef het nie – hulle is deur slange doodgemaak. En moenie mor, soos sommige van hulle gemor het nie – hulle is deur die vernietiger uitgedelg. Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer. Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie! Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe 'n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur. Daarom, my geliefdes, vlug weg van die afgodediens! Ek praat soos met verstandige mense; oordeel self oor wat ek sê: Die beker van danksegging, waaroor ons die dankgebed uitspreek, is dit nie deelname aan die bloed van •Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy? “Alles is geoorloof” – ja, maar nie alles is nuttig nie. “Alles is geoorloof” – ja, maar nie alles is opbouend nie. Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander. Enigiets wat op die vleismark verkoop word, mag julle eet, sonder om vrae te stel ter wille van die gewete, want “die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here”. Indien een van die ongelowiges julle nooi, en julle wil gaan, eet enigiets wat vir julle voorgesit word, sonder om vrae te stel ter wille van die gewete. Maar as iemand vir julle sê: “Dit is 'n gode-offer dié,” moet julle dit nie eet nie, ter wille van die een wat julle ingelig het, en die gewete. Hiermee bedoel ek nie jou gewete nie, maar dié van die ander. Waarom word my vryheid dan beoordeel deur 'n ander se gewete? As ek met dankbaarheid saam eet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank? Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God. Julle moenie vir Jode of Grieke of die •gemeente van God 'n struikelblok wees nie. Net soos ek ook probeer om alle mense in alle opsigte in ag te neem, en om nie my eie voordeel nie, maar dié van die meerderheid, na te streef, sodat hulle verlos mag word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg. Ek prys julle, omdat julle altyd aan my dink, en omdat julle vashou aan die tradisies, soos ek dit aan julle oorgelewer het. Maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat met 'n bedekking op sy kop bid of profeteer, doen sy hoof oneer aan. En elke vrou wat met 'n onbedekte kop bid of profeteer, doen haar hoof oneer aan; want dit is presies dieselfde asof haar kop geskeer is. Want as 'n vrou nie haar kop bedek nie, moet sy ook maar haar hare kort afsny. As dit vir haar 'n skande is om haar hare kort te sny of haar kop kaal te skeer, moet sy haar kop bedek. 'n Man behoort nie sy kop te bedek nie, omdat hy die beeld en sieraad van God is, terwyl die vrou die sieraad van die man is. Want die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man; en die man is nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou, ter wille van die engele, 'n teken van gesag op haar kop hê. Nogtans bestaan 'n vrou nie apart van 'n man nie en 'n man nie apart van 'n vrou nie – in die Here – want soos die vrou daar is uit die man, so ook is die man daar deur die vrou. Maar alle dinge kom van God. Oordeel julle self onder mekaar: Is dit gepas vir 'n vrou om met 'n onbedekte kop tot God te bid? Leer juis die natuurlike orde julle nie dat as 'n man sy hare lank dra, dit vir hom 'n oneer is, maar as 'n vrou haar hare lank dra, dit vir haar 'n eer is nie? Want lang hare is vir haar as 'n bedekking gegee. As iemand egter twisgierig wil wees – ons het nie so 'n gewoonte nie, en die ander •gemeentes van God ook nie. In my volgende voorskrif prys ek julle nie aan nie, dat wanneer julle bymekaarkom, dit meer kwaad as goed doen. Allereers hoor ek dat wanneer julle as •gemeente saamkom, daar verdeling onder julle is; en in 'n mate glo ek dit, want daar moet onvermydelik groeperings onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproefdes onder julle is. Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie; want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en 'n ander word dronk. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie. Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom. Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink. Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap. Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie. As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet. As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom. Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie. Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is 'n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is 'n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: Aan een word 'n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander gawes van genesing deur die één Gees; aan een dinamiese kragte, aan 'n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan 'n ander verskillende soorte tale, en aan nog 'n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil. Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê, “Omdat ek nie 'n hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê, “Omdat ek nie 'n oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die ganse liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As alles gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly. Julle is die liggaam van •Christus, en elkeen individueel 'n ledemaat. In die •gemeente het God aangewys: eerstens •apostels, tweedens •profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg. Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek 'n weergalmende ghong of 'n kletterende simbaal geword. En al profeteer ek, en begryp ek alle geheime, en besit ek alle kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks! Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks. Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot 'n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan. Want ons ken gedeeltelik, en ons profeteer gedeeltelik, maar wanneer die volmaakte gekom het, sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan. Toe ek nog 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van 'n kind agtergelaat. Nou sien ons wel 'n geheimnisvolle beeld, soos in 'n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde. Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer. Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos. Die een wat in tale spreek, bou homself op, terwyl die een wat profeteer, die •gemeente opbou. Ek wil hê dat julle almal in tale spreek, maar meer nog dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter waarde as die een wat in tale spreek; tensy hy dit kan uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. Broers, as ek dan nou na julle kom en in tale spreek, watter nut het ek vir julle; tensy ek tot julle voordeel 'n openbaring of 'n insig of 'n profesie of 'n lering meedeel? Dit sal wees soos lewelose dinge wat klank voortbring, 'n fluit of 'n lier. As dit nie onderskeibare klanke voortbring nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die lier gespeel word? As 'n trompet 'n onduidelike klank voortbring, wie sal gereedmaak vir oorlog? So ook julle – as julle tonge nie 'n duidelik verstaanbare boodskap oordra nie, hoe sal enigiemand verstaan wat daar gesê word? Want julle sal in die wind praat. Daar mag hoeveel verskillende tale in die wêreld wees, en tog is nie een sonder klank nie. As ek nie die betekenis van die klank ken nie, sal ek vir die spreker daarvan 'n vreemdeling wees, en hy vir my. So ook met julle. Aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die opbou van die gemeente. Daarom moet die een wat in tale spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n taal bid, bid my gees wel, maar my verstand is onvrugbaar. Wat is dan die slotsom? Ek sal deur die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid; ek sal deur die gees lofsange sing, maar ek sal ook met die verstand lofsange sing. Want as mens net in die gees 'n lofprysing bring, hoe sal iemand in die posisie van 'n oningeligte “•amen” kan sê op jou danksegging, aangesien hy nie verstaan wat jy sê nie? Jy mag wel goed dank betuig, maar dit dien nie tot opbou van die ander persoon nie. Ek dank God dat ek selfs meer as julle almal in tale spreek. Maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te kan onderrig, as om duisende woorde in 'n onverstaanbare taal te praat. Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke. In die Wet staan daar geskryf, “in vreemde tale en deur die lippe van vreemdes sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle nie na My luister nie,” sê die Here. Hiervolgens is die spreek in tale 'n teken, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges, terwyl profesie nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges. As die hele gemeente dan op een plek vergader en almal in tale spreek, en daar kom oningeligtes of ongelowiges binne, sal hulle nie sê, “Julle is van julle sinne beroof” nie? Maar indien almal profeteer en 'n ongelowige of 'n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: “Werklik, God is in julle midde.” Wat volg hieruit, broers? Wanneer julle saamkom, het elkeen 'n psalm, 'n lering, 'n openbaring, 'n taal of 'n uitleg. Laat alles steeds tot opbou geskied. Wanneer iemand in 'n taal spreek, laat dit verkieslik net twee of drie sprekers wees, om die beurt, en laat iemand dit uitlê; maar as daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, laat hy in die •gemeente swyg. Laat hy met homself en met God praat. Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel. Indien 'n openbaring gemaak is aan een van die ander wat daar sit, laat die vorige spreker swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal onderrig en bemoedig kan word. Die geeste van profete is aan profete onderworpe. Want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede. So hoort dit in al die gemeentes van die •heiliges. Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is 'n skande vir 'n vrou om in die gemeente te praat. Is die woord van God van julle afkomstig? Of het dit slegs julle bereik? As enigeen meen dat hy 'n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as 'n opdrag van die Here te erken. Maar enigeen wat dit misken, word misken. Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer, en moenie die spreek in tale belet nie. Laat alles egter gepas en ordelik verloop. Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: •Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die •apostels. As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die •gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom. Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in •Christus Jesus, ons Here. As ek in Efese as 'n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande. Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou 'n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade 'n eie vorm gee. Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, 'n ander vir diere, 'n ander vir voëls, en nog 'n ander vir visse. Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van 'n ander in glans. So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word, is 'n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is 'n geestelike liggaam. As daar 'n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam. So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter 'n lewendmakende Gees geword. Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede 'n mens uit die hemel. Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die •koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie. Kyk, ek vertel vir julle 'n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne 'n oomblik, 'n oogwink. 'n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde lê in die wet. Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus •Christus. Daarom, my geliefde broers, wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie. Wat die insameling vir die •heiliges betref: Die reëling wat ek in die •gemeentes van Galasië getref het, moet julle ook so uitvoer. Elkeen van julle afsonderlik moet op die eerste dag van die week 'n bedrag opsy sit, en volgens sy verdienste spaar, sodat die insamelings nie eers plaasvind wanneer ek kom nie. Wanneer ek opdaag, sal ek, wie julle ook al goedkeur, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawes na Jerusalem te neem. Indien dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle my vergesel. Ek sal na julle kom as ek deur Macedonië gereis het, want ek gaan deur Macedonië reis. Moontlik sal ek 'n tyd by julle oorbly, of selfs oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag gaan. Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie; ek hoop immers om 'n tyd lank by julle te bly, indien die Here dit toelaat. Ek sal egter tot Pinkster in Efese bly, want 'n deur het groot en kragtig vir my oopgegaan, hoewel daar baie teenstanders is. As Timoteus kom, sorg dat hy by julle niks te vrees het nie, want soos ek, doen hy ook die werk van die Here; daarom moet niemand hom minag nie. Help hom in vrede om na my te kom, want ek verwag hom saam met die broers. En oor die broer Apollos: Ek het hom herhaaldelik versoek om saam met die broers na julle te gaan, maar hy wil beslis nie nou gaan nie. Hy sal gaan wanneer dit vir hom geleë is. Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk. Laat alles wat julle doen, in liefde geskied. Ek rig nog 'n ernstige versoek tot julle, broers. Julle weet dat Stefanas en sy huisgesin die eerstelinge in Agaje is, en hulleself tot diens van die •heiliges gestel het. Onderwerp julle aan die leiding van sulke mense, en aan elkeen wat saamwerk en hom inspan. Ek is bly oor die koms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vergoed vir my gemis aan julle. Hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Gee daarom erkenning aan sulke mense. Die •gemeentes in Asië groet julle. Akwila en Priska, en die gemeente wat in hulle huis bymekaarkom, stuur vir julle baie groete in die Here. Al die broers groet julle. Groet mekaar met 'n heilige soen. Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die •gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges in die hele Agaje: Genade en vrede vir julle van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus. As ons dan verdruk word, is dit ter wille van julle bemoediging en redding; as ons bemoedig word, is dit ter wille van julle bemoediging, wat tot uitdrukking kom deurdat julle met volharding dieselfde lyding verduur as wat ons deurmaak. Ons hoop vir julle is seker, omdat ons weet dat, soos julle deel het aan die lyding, julle ook so deel het aan die bemoediging. Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as't ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek. Op Hom wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred. Hiertoe dra julle ook by deur julle gebede vir ons, sodat deur bemiddeling van baie mense, namens ons dank betuig kan word vir die genadegawe aan ons. Ons roem is juis dit: die getuienis van ons gewete dat ons in die wêreld, en veral teenoor julle, opgetree het in opregtheid en met eerlikheid wat van God kom – ook nie deur menslike wysheid nie, maar deur die genade van God. Ons skryf immers aan julle niks anders as wat julle lees en ook verstaan nie. En ek hoop dat julle later ten volle sal verstaan – soos julle ons ook ten dele verstaan het – dat ons op die dag van ons Here Jesus julle tot roem sal wees, net soos julle ook vir ons. In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, sodat julle 'n tweede guns kon ontvang. Ek wou by julle langs deurreis na Macedonië, om weer van Macedonië af na julle terug te kom, en deur julle na Judea toe voortgehelp te word. Ek het tog nie ligtelik gehandel toe ek my dit voorgeneem het nie? Of beplan ek wat ek beplan uit menslike swakheid, sodat, wat my betref “ja, ja” tegelyk “nee, nee” kan wees? Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk “ja” en “nee” nie; want Jesus •Christus, die •Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my en Silvanus en Timoteus, was nie “ja” én “nee” nie – inteendeel, in Hom het dit “ja” geword. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “•amen” aan God, tot sy eer. Dit is God wat ons saam met julle in Christus 'n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het. Wat my betref, ek roep God as getuie oor my dat ek juis om julle te spaar, nog nie weer na Korinthe gekom het nie. Nie dat ons oor julle geloof wil baasspeel nie – inteendeel, ons is medewerkers aan julle vreugde. Julle staan immers vas in die geloof. Dit het ek my dus voorgeneem: om nie weer met droefheid na julle te kom nie. Immers, as ék julle bedroef maak, wie anders kan my bly maak as die een wat ek bedroef gemaak het? En dit is presies wat ek geskryf het, sodat ek nie, wanneer ek kom, bedroef word deur hulle wat my moes bly maak nie. Ek vertrou op julle almal, dat my vreugde julle almal s'n sal wees. Want met groot kwelling en angs in my hart het ek deur baie trane heen aan julle geskryf, nie om julle te bedroef nie, maar dat julle kan weet van die liefde wat ek in so 'n groot mate teenoor julle koester. Maar as iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy bedroef het nie, maar, sonder om te oordryf, in 'n mate julle almal. Vir so iemand is hierdie teregwysing deur die meerderheid genoeg. Gevolglik moet julle hom in plaas daarvan eerder vergewe en bemoedig, sodat iemand soos hy nie dalk deur oormatige droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle ernstig om julle liefde aan hom te herbevestig. Want vir dié doel het ek ook geskryf: om julle betroubaarheid te leer ken, of julle in elke opsig gehoorsaam is. En vir hom wat julle iets vergeef, vergeef ek ook. Wat ek inderdaad vergeef het – as ek iets vergeef het – was ter wille van julle, voor die aangesig van •Christus, sodat Satan nie die oorhand oor ons kry nie. Ons is immers nie onbekend met sy planne nie. Toe ek in Troas aangekom het om die evangelie van Christus te verkondig, en die Here reeds 'n deur vir my oopgemaak het, kon ek nogtans geen gemoedsrus kry nie, omdat ek my broer Titus nie daar aangetref het nie. Daarom het ek toe van hulle afskeid geneem en na Macedonië vertrek. Maar dank aan God, wat ons altyd deur •Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde 'n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde 'n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus. Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is ons brief, geskryf in ons harte, gelees en verstaan deur alle mense. Julle is duidelik 'n brief van •Christus wat deur ons diens opgestel is, geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. So 'n vertroue op God het ons deur Christus. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om te reken dat iets uit onsself kom nie – nee, ons bekwaamheid kom van God. Hy het ons bekwaam gemaak om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees – nie van die letter nie, maar van die Gees. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. As die bediening van die dood, wat met letters op klippe gegraveer is, met soveel heerlikheid tot stand gekom het dat die kinders van Israel nie stip na die aangesig van Moses kon kyk nie, weens die glans op sy gesig, wat tog aan die verbygaan was – hoeveel te meer sal die bediening van die Gees nie in heerlikheid wees nie? Want as daar heerlikheid was in die bediening wat lei tot veroordeling, soveel oorvloediger in heerlikheid is die bediening wat lei tot regverdiging! Trouens, wat verheerlik was, is eintlik in hierdie opsig geen verheerliking nie, weens dié allesoortreffende heerlikheid. Want as dit wat vergaan, met heerlikheid beklee was, het die blywende veel groter heerlikheid. Terwyl ons dan so 'n hoop het, tree ons op met groot vrymoedigheid – nie soos Moses, wat 'n sluier oor sy gesig getrek het, sodat die kinders van Israel nie die einde van dit wat aan die vergaan was, kon aanskou nie. Maar hulle denke was verhard. Want tot vandag toe lê dieselfde sluier oor die Ou Testament wanneer dit gelees word; en dit word nie weggeneem nie, want dit word slegs in Christus verwyder. Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar 'n sluier oor hulle harte. Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees. Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens. As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van •Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar nie oorweldig nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word. Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God. Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig. Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het wat van God kom, 'n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. As ons net nie ontklee en nakend gevind sal word nie! Want ons wat nog in die tentwoning is, sug as mense wat swaarkry, omdat ons nie ontklee nie, maar geklee wil word, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg gegee het. Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie. Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van •Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees. Ons is nie weer besig om onsself by julle aan te beveel nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teen dié wat hulle op die uiterlike voorkoms beroem, en nie op wat in die hart is nie. As ons buite onsself is, is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle. Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is. Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons 'n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! Want Hy sê: “Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing! Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie. Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë: in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede; geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger; met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde; met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand; te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is; as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit. Ons het reguit met julle gepraat, Korinthiërs; ons harte is wyd oop vir julle. Julle word nie deur ons ingeperk nie, maar julle word deur julleself in julle eie binneste ingeperk. Maar doen dít as teenprestasie – ek praat soos met kinders: Stel julleself ook wyd oop vir ons. Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen •Christus en Belial, of wat het 'n gelowige gemeen met 'n ongelowige? En watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie aanraak wat •onrein is nie.” “En Ek sal julle aanneem,” en “Ek sal vir julle 'n vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige. Aangesien ons hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alle besoedeling van liggaam en gees, terwyl ons met diep ontsag vir God ons heiligheid verwesenlik. Maak vir ons ruimte. Ons het niemand veronreg nie; ons het niemand skade berokken nie; ons het niemand uitgebuit nie. Ek sê dit nie om julle te veroordeel nie – ek het vantevore al gesê dat julle in ons harte is om saam te sterf en saam te leef. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle, en is baie trots op julle. Ek is nou vol moed, en loop oor van blydskap te midde van al ons verdrukking. Want selfs nadat ons in Macedonië gekom het, het ons liggaamlik geen rus gehad nie, en het ons van alle kante verdrukking ervaar – van buite aanslae, en van binne angs. Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig deur die koms van Titus – en nie net deur sy koms nie, maar ook deur die bemoediging waarmee hy oor julle bemoedig is. Hy het ons kom vertel van julle verlange, van julle berou, van julle ywer vir my, sodat ek my nou nog meer verheug. Want al het ek julle met die brief bedroef gemaak, is ek nie spyt nie. En al was ek ook spyt – want ek sien dat daardie brief julle bedroef gemaak het, al was dit ook net vir 'n rukkie – is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het. Julle is volgens die wil van God bedroef gemaak, met die gevolg dat julle in geen opsig deur ons benadeel is nie. Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle onskuldig is wat hierdie saak betref. Al het ek aan julle geskryf, was dit nie ter wille van die een wat onreg gepleeg het nie, en ook nie ter wille van die verontregte nie, maar ter wille daarvan dat julle toewyding vir ons duidelik aan julle bekend kan word voor God. Daarom is ons bemoedig. En benewens ons bemoediging, het ons ons nog meer verbly oor Titus se blydskap, omdat hy gemoedsrus by julle almal gevind het. As ek enigsins oor julle by hom gespog het, staan ek nie beskaamd nie; maar soos alles wat ons julle vertel het, waar is, so het ons gespog by Titus ook waar geword. En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker, namate hy hom herinner aan julle almal se gehoorsaamheid, en hoe julle hom met vrees en bewing ontvang het. Ek is verheug dat ek in alle opsigte op julle kan staatmaak. Ons laat julle ook weet, broers, van die genade van God wat aan die •gemeentes in Macedonië gegee is: dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in 'n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af. Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was. Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan hê aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges. Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons. Gevolglik het ons Titus sterk aangemoedig om, soos wat hy hierdie genadewerk reeds begin het, dit ook net so by julle te voltooi. Soos julle nou van alles oorvloed het, geloof en welsprekendheid en kennis en alle ywer en die liefde, wat deur ons toedoen onder julle is, sorg dat julle ook in hierdie genadewerk oorvloedig is. Ek sê dit nie as 'n opdrag nie, maar om aan die hand van ander se ywer die egtheid van julle liefde te toets. Want julle ken die genade van ons Here Jesus •Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word. En ek gee my mening hieroor, want dit strek tot julle voordeel – julle wat reeds 'n jaar gelede begin het om dit nie net te doen nie, maar dit ook te wil doen. Voltooi dan nou ook die taak, sodat, net soos julle bereidwillig was om dit te wil doen, julle ook bereidwillig sal wees om dit te voltooi uit wat julle het. Want as daar bereidwilligheid is, is dit aanneemlik volgens wat 'n mens het – nie volgens wat jy nie het nie. Dit beteken nie dat ander verligting kry en julle swaarkry nie, maar wel dat daar ewewig sal wees. Julle huidige oorvloed vul hulle tekort aan, sodat hulle oorvloed weer julle tekort kan aanvul, en daar so ewewig kan wees. Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie, en die een met net 'n bietjie, nie te min nie.” En aan God die dank, wat dieselfde ywer in julle belang in die hart van Titus gegee het. Want hy het wel ons versoek ontvang, maar het ook baie ywerig en vrywillig na julle toe vertrek. En saam met hom het ons die broer gestuur wie se lof in al die •gemeentes besing word oor sy werk vir die evangelie. En nie net dit nie: hy is ook deur die gemeentes aangewys as ons reisgenoot in hierdie genadewerk, wat deur ons verrig word tot verheerliking van die Here en as bewys van ons bereidwilligheid. So wil ons voorkom dat iemand ons verdink oor hierdie ruim som wat ons behartig. Want ons is bedag op wat reg is, nie net voor die Here nie, maar ook voor mense. Saam met hulle stuur ons ons broer, vir wie ons dikwels en in vele opsigte getoets, en ywerig bevind het, en wat nou nog yweriger is, deur sy groot vertroue in julle. Wat Titus betref, hy is my deelgenoot en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is gesante van die gemeentes, 'n eer vir •Christus. Lewer dan aan hulle voor die gemeentes die bewys van julle liefde en van ons trots op julle. Eintlik is dit vir my onnodig om aan julle oor die dienslewering aan die •heiliges te skryf. Want ek ken julle bereidwilligheid, waarmee ek oor julle by die Macedoniërs spog – dat Agaje al sedert 'n jaar gelede gereed is, en dat julle ywer die meeste van hulle aangespoor het. Maar ek het die broers gestuur, sodat ons gespog oor julle in hierdie saak nie verydel sal word nie, en julle gereed sal wees soos ek gesê het julle sal wees – en ook sodat, indien daar dalk Macedoniërs saam met my sou kom en julle in hierdie saak onvoorbereid sou aantref, ons ons nie sal hoef te skaam nie, om nie eers van julle te praat nie. Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle te gaan, en die •dankoffer wat julle vroeër beloof het, in orde te kry, sodat dit gereed sal wees as 'n werklike dankoffer, en nie as iets wat afgedwing is nie. Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes. Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het wyd uitgestrooi; Hy het aan die armes gegee; sy •geregtigheid bly vir ewig.” En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees, en dit loop deur ons bemiddeling uit op danksegging aan God. Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die •heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot 'n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God. Op grond van die bewys wat deur hierdie diensbetoning gelewer word, verheerlik hulle God oor julle gehoorsaamheid aan julle belydenis van die evangelie van •Christus, en oor die vrygewigheid van julle bydrae aan hulle en aan almal. Terselfdertyd verlang hulle, in hulle gebede vir julle, vuriglik na julle, weens die oortreffende genade wat God aan julle bewys het. Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe! Ek self, Paulus – wat glo bedees is wanneer ek by julle teenwoordig is, maar ewe manhaftig teenoor julle wanneer ek afwesig is – doen 'n ernstige beroep op julle, met die sagmoedigheid en vriendelikheid van •Christus. Ek pleit dat, wanneer ek by julle is, ek nie manhaftig hoef te wees, met die selfvertroue waarmee ek reken om diegene aan te durf wat van mening is dat ons in menslike swakheid handel nie. Want al tree ons in menslike swakheid op, voer ons die stryd nie in menslike swakheid nie. Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar, danksy God, kragtig om sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig, en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God. Ook neem ons elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus, en staan gereed om elke ongehoorsaamheid te straf, tot wanneer julle volledig gehoorsaam sal wees. Kyk na wat ooglopend is: As iemand oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy dit weer by homself in berekening bring dat, net soos hy aan Christus behoort, so ook ons. Want selfs al sou ek my 'n bietjie buitensporig beroem op die gesag wat die Here aan ons gegee het om julle op te bou, en nie om af te breek nie, sal ek nie daaroor skaam wees nie. My doel is nie om die indruk te skep dat ek julle met my briewe wil bangpraat nie. Want, sê hulle: “Sy briewe is gewigtig en streng, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak, en sy woorde niks werd nie.” So iemand moet hiermee rekening hou dat ons woorde in ons briewe, wanneer ons afwesig is, ooreenstem met ons dade wanneer ons teenwoordig is. Ons waag dit nie om onsself gelyk te stel aan of te vergelyk met sommige van dié wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hulle aan hulleself meet, en met hulleself vergelyk, verstaan hulle niks. Maar wat ons betref, ons sal nie buite ons perke gaan wanneer ons ons op iets beroem nie, maar binne die perke van die werksgebied wat God vir ons as perk gestel het, om julle ook te bereik. Ons oorskry immers nie ons perke, asof ons nog nie by julle uitgekom het nie; want ons was die heel eerste met die evangelie van Christus by julle. Ons oorskry ook nie ons perke deur ons op ander mense se arbeid te beroem nie. Ons koester egter die hoop dat, namate julle geloof toeneem, ons arbeid volgens ons werksgebied by julle grootliks mag uitbrei, sodat ons die evangelie ook in die landstreke anderkant julle kan verkondig, sonder om ons te beroem op die resultate wat in iemand anders se werksgebied bereik is. Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here. Want dit is nie die een wat homself aanbeveel, wat die toets deurstaan het nie, maar die een wat deur die Here aanbeveel word. As julle maar 'n klein bietjie dwaasheid van my sou kon verdra! Verdra my tog maar! Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan •Christus, verbind het, om julle as 'n rein maagd aan Hom aan te bied. Maar ek is bang dat, soos die slang vir Eva met sy geslepenheid mislei het, julle gedagtes dalk bederf kan raak, verwyderd van die opregte en reine toewyding aan Christus. Want as iemand 'n ander Jesus kom verkondig wat ons nie verkondig het nie, of julle ontvang 'n ander gees wat julle nie ontvang het nie, of 'n ander evangelie wat julle nie aanvaar het nie, verdra julle dit geredelik. Ek reken inderdaad dat ek in geen opsig terugstaan by die sogenaamde super-apostels nie. Ek mag onbedrewe wees as spreker, maar nie onbedrewe in kennis nie – dit het ons julle in elke opsig en op allerlei maniere laat sien. Of het ek 'n sonde begaan deur myself te verneder, sodat julle verhoog kon word, omdat ek die evangelie van God sonder betaling aan julle verkondig het? Ander •gemeentes het ek beroof deur vergoeding te aanvaar om julle te bedien. En terwyl ek by julle was en 'n tekort gehad het, het ek ook niemand geldelik belas nie, want die broers wat van Macedonië af gekom het, het voldoende in my behoeftes voorsien. Ek het my daarvan weerhou, en sal my daarvan weerhou, om in enige opsig vir julle 'n las te wees. Die waarheid van Christus is in my: Hierdie roem van my sal nie verswyg word in die gebiede van Agaje nie. Waarom? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet, ek het! Maar wat ek doen, en sal voortgaan om te doen, is om diegene te verhinder wat 'n geleentheid soek om in die saak waaroor hulle spog, as ons gelykes beskou te word. Want sulke mense is vals apostels, slinkse werkers, terwyl hulle hulleself vermom as •apostels van Christus. En geen wonder nie; want selfs Satan vermom hom as 'n engel van die lig! Daarom is dit ook nie vreemd as sy dienaars hulle ook vermom as dienaars van •geregtigheid nie. Hulle einde sal volgens hulle werke wees. Ek sê weer: Laat niemand my as 'n dwaas beskou nie! Of anders: Aanvaar my dan nou maar as 'n dwaas, dat ek ook 'n bietjie oor iets kan spog. Wat ek nou gaan sê, sê ek nie soos die Here dit sou doen nie, maar soos 'n dwaas, in vertroue op my eie gespog. Aangesien daar baie is wat, volgens menslike standaarde, oor iets spog, sal ek dan ook maar oor iets spog. Want julle verdra mos graag dwase mense, al is julle so verstandig! Want julle verdra dit as iemand van julle slawe maak, as iemand julle uitsuig, as iemand julle misbruik, as iemand hooghartig optree, en julle in die gesig slaan. Ek sê dit tot my skande, dat ons te swak geword het daarvoor. Maar waaroor iemand ook al waag om te spog – ek praat soos 'n dwaas – ek waag dit ook: Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle nakomelinge van Abraham? Ek ook. Is hulle dienaars van •Christus? – nou praat ek sonder verstand – ek nog meer: oorvloediger in harde werk, meer dikwels in die tronk, uitermate geslaan, en dikwels in doodsgevaar. Van die Jode het ek vyf keer veertig houe minus een gekry; drie maal is ek met stokke geslaan; een maal is ek gestenig; drie maal het ek skipbreuk gely; 'n nag en 'n dag lank het ek die diepsee trotseer; dikwels op reis, met gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van die kant van my eie volk, gevare van die kant van die heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, gevare onder vals broers, met harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, honger en dors, dikwels sonder kos, koud en nakend. En afgesien van nog ander ongenoemde dinge, is daar daaglikse druk op my – my kommer oor al die •gemeentes. Wie is swak, en ek is nie ook swak nie? Wie kom tot struikeling, en ek brand nie van ontsteltenis nie? As daar dan gespog moet word, sal ek oor my swakhede spog. God, die Vader van die Here Jesus, wat lofwaardig is tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het koning Aretas se etnarg die stad Damaskus bewaak om my te arresteer. Deur 'n venster in die stadsmuur is ek toe in 'n mandjie laat sak, en het ek aan sy hande ontkom. As daar dan geroem moet word, is dit nie voordelig nie; maar ek kom nou by gesigte en openbarings van die Here. Ek weet van 'n man in •Christus wat veertien jaar gelede tot in die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam is, weet ek nie, God weet dit. Ek weet ook van so 'n man – of dit met die liggaam of sonder die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is tot in die paradys, en onuitspreekbare woorde gehoor het wat 'n mens nie mag noem nie. Op so iemand sal ek my beroem, maar op myself sal ek my nie beroem nie, behalwe oor my swakhede. As ek my wel daarop wil beroem, sal ek nie dwaas wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand meer aan my sal toedig as wat hy van my sien of by my hoor nie, selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van Satan, om my met die vuis te slaan. Hieroor het ek die Here drie maal gesmeek dat dit van my moet wyk. Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk. Ek het soos 'n dwaas opgetree! Julle het my daartoe gedwing, want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. Dit wat 'n •apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. In watter opsig is julle dan swakker behandel as die ander •gemeentes, behalwe dat ek nie vir julle 'n geldelike las was nie? Vergewe my tog hierdie onreg! Kyk, dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle te kom. En ek sal nie 'n geldelike oorlas wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar vir julle. Dit is nie die kinders wat moet spaar vir die ouers nie, maar die ouers vir die kinders. Wat my betref, sal ek met graagte betaal, en myself as betaling gee, ter wille van julle siele. As ek julle oorvloediger liefhet, waarom ontvang ek dan minder liefde? Nou goed, ek het julle dus nie belas nie. Maar aangesien ek 'n slinkse mens is, het ek julle glo met lis gevang! Het ek julle miskien uitgebuit deur enigeen van dié wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus aangespoor, en die broer saam met hom gestuur – het Titus julle miskien uitgebuit? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde voetspore, gewandel nie? Julle dink reeds lankal dat ons onsself teenoor julle verdedig. Deur •Christus praat ons in die teenwoordigheid van God; en dit alles, geliefdes, is om julle op te bou. Ek is bevrees dat as ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek graag wil nie, en ek deur julle bevind sal word soos julle graag wil nie; dat daar miskien onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid sal wees; dat wanneer ek weer kom, my God my voor julle sal verneder, en ek sal treur oor baie van dié wat vroeër gesondig het, en hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie. Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies sal elke woord bevestig word.” Vir dié wat voorheen gesondig het, en ook vir al die ander, het ek dit tevore, toe ek die tweede keer daar was, gesê; en nou, in my afwesigheid, sê ek dit vooruit, dat wanneer ek kom, ek hulle nie weer sal ontsien nie. Julle soek immers 'n bewys dat dit •Christus is wat deur my praat. Hy is nie swak teenoor julle nie, maar is kragtig onder julle. Hy is weliswaar deur swakheid gekruisig, maar Hy leef deur die krag van God. So is ook ons swak in Hom, maar teenoor julle sal ons saam met Hom leef, uit die krag van God. Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself. Ken julle julleself dan nie? Besef julle dan nie dat Jesus Christus in julle is nie? Tensy julle die toets nie deurstaan het nie. Maar ek hoop dat julle sal insien dat ons die toets wel deurstaan het. Ons bid wel tot God dat julle geen kwaad sal doen nie – nie om te wys dat ons die toets deurstaan het nie, maar sodat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie. Ons is nie in staat om enigiets teen die waarheid te doen nie, maar wel vir die waarheid. Ons is bly wanneer ons swak is en julle sterk – en hiervoor bid ons, naamlik vir julle vervolmaking. Daarom skryf ek hierdie dinge in my afwesigheid, sodat wanneer ek by julle aanwesig is, ek nie streng hoef op te tree volgens die gesag wat die Here my gegee het nie – om op te bou, en nie om af te breek nie. Ten slotte, broers, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Groet mekaar met 'n heilige soen. Al die •heiliges stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal. Paulus, 'n •apostel – nie op gesag van mense of deur 'n mens nie, maar wel deur Jesus •Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het – en al die broers saam met my, aan die •gemeentes van Galasië: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus, Hy wat Homself gegee het vir ons sondes, om ons te red uit die huidige bose bedeling, volgens die wil van ons God en Vader, aan wie die heerlikheid behoort vir ewig en ewig! •Amen. Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van •Christus geroep het, wegdraai na 'n ander evangelie. Daar is nie 'n ander evangelie nie – al is daar sommige mense wat julle probeer verwar, en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar selfs al sou ons, of 'n engel uit die hemel, 'n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees! Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer 'n dienskneg van Christus wees nie! Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie 'n menslike saak is nie; want ek het dit nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur 'n openbaring van Jesus •Christus. Julle het immers gehoor hoe ek vroeër volgens die Joodse godsdiens geleef het, dat ek die •kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer vernietig het, en dat ek in die uitlewing van die Joodse godsdiens baie van my tydgenote in my volk oortref het, deurdat ek my soveel meer beywer het vir die tradisies van my voorvaders. Toe God dit egter goedgevind het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af en my deur sy genade geroep het – om sy Seun aan my te openbaar, sodat ek Hom aan die heidene sou verkondig, het ek nie dadelik vlees en bloed geraadpleeg nie. Ook het ek nie na Jerusalem opgegaan na hulle wat vóór my •apostels was nie, maar ek het wel na Arabië gegaan, en toe weer na Damaskus teruggekeer. Eers later, ná drie jaar, het ek na Jerusalem opgegaan om Sefas te ontmoet, en ek het vyftien dae by hom gebly; maar van die apostels het ek niemand anders gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here. Wat ek vir julle skryf, kyk, dit sê ek voor God – ek lieg nie! Later het ek na die streke van Sirië en Silisië gegaan, maar ek was persoonlik onbekend by die Christelike •gemeentes in Judea. Al wat hulle steeds bly hoor het, was: “Hy wat ons voorheen vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër probeer vernietig het!” En hulle het God oor my verheerlik. Daarna, veertien jaar later, het ek weer, saam met Barnabas, na Jerusalem opgegaan. Ek het ook Titus saamgeneem. Ek het op grond van 'n openbaring opgegaan, en die evangelie wat ek onder die heidene verkondig, aan hulle voorgelê – afsonderlik aan die mense van aansien – sodat ek nie vergeefs hardloop of gehardloop het nie. Maar selfs Titus, wat saam met my was, is nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is. Die saak het ontstaan omdat skynheilige broers, wat onder valse voorwendsels ingesmokkel is, ingesypel het om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om van ons slawe te maak. Ons het nie vir 'n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly. Maar die mense van aansien – wat hulle vroeër was – maak aan my geen verskil nie; God slaan nie ag op die aansien wat 'n mens het nie. Ja, die vooraanstaande mense het my niks meer opgelê nie. Inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie aan die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos aan •Petrus die evangelie aan die besnedenes – want Hy wat kragtig in Petrus gewerk het, met die oog op sy diens as •apostel aan die besnedenes, het ook kragtig in my gewerk, met die oog op die heidene – het Jakobus en Sefas en Johannes, wat as die pilare gereken is, die genade wat aan my gegee is, begryp, en het hulle die regterhand van broederskap na my en Barnabas gereik, sodat ons na die heidene sou gaan, en hulle na die besnedenes. Ons moes slegs sorg dat ons die armes in gedagte hou – presies wat ek my ook beywer het om te doen. Toe Sefas in Antiogië aangekom het, het ek hom egter openlik teengegaan, omdat hy veroordeeld gestaan het; want voordat sekere mense van Jakobus opgedaag het, het Sefas gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle opdaag, het hy hom teruggetrek en afgesonder, omdat hy bang was vir diegene uit die besnydenis. En die ander Jode het ook saam met hom skynheilig opgetree, met die gevolg dat selfs Barnabas deur hulle skynheiligheid meegevoer is. Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: “As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” Ons is gebore Jode, en nie sondaars uit die heidene nie; en tog weet ons dat 'n mens nie op grond van die uitvoering van die wet geregverdig kon word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus •Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons regverdig verklaar kon word op grond van geloof in Christus, en nie op grond van die uitvoering van die wet nie; omdat geen mens op grond van die uitvoering van die wet geregverdig sal word nie. Maar as ons, deurdat ons versoek om in Christus geregverdig te word, ook self as sondaars bevind word, maak dit Christus 'n dienaar van die sonde? Hoegenaamd nie! Want as ek dit wat ek afgebreek het weer opbou, betoon ek myself daarmee as 'n oortreder. Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. Ek verwerp nie die genade van God nie; want as •vryspraak deur die wet kom, dan het Christus tevergeefs gesterf. O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus •Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” •Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang. Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus. Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur 'n belofte geskenk. Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één! Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo. Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie. Want deur die geloof is julle almal kinders van God in •Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename. Hiermee bedoel ek: Solank as die erfgenaam nog minderjarig is, verskil hy niks van 'n slaaf nie, alhoewel hy die eienaar van alles is. Maar hy staan onder die beheer van voogde en bestuurders, tot die tyd aanbreek wat deur sy vader bepaal is. Net so is dit ook in ons geval: Toe ons nog minderjarig was, was ons as slawe onderwerp aan die elementêre beginsels van die wêreld; maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word. En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “ Abba, Vader!” Jy is dus nie meer slaaf nie, maar seun; en as jy seun is, is jy ook erfgenaam deur God. Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie. En noudat julle God leer ken het – of liewer, noudat julle deur God geken is – hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die swak en minderwaardige elementêre beginsels, en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak? Julle onderhou vasgestelde dae en maande en tye en jare. Wat julle betref, is ek bevrees dat al my harde arbeid onder julle dalk tevergeefs was. Ek smeek julle, broers, word soos ek, omdat ek soos julle geword het! Julle het my geen onreg aangedoen nie. Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het, en alhoewel my siek liggaam vir julle 'n beproewing was, het julle my nie verag of verfoei nie. Inteendeel, julle het my soos 'n engel van God ontvang, soos •Christus Jesus! Waar is julle blydskap oor my dan nou? Ek kan van julle getuig dat, indien dit moontlik was, julle julle oë sou uitruk en vir my sou gee! Het ek dan julle vyand geword omdat ek vir julle die waarheid vertel? Hulle beywer hulle nie met goeie bedoelings vir julle nie; inteendeel, hulle wil julle van my af weghou, sodat julle julle vir húlle kan beywer. Dis goed om julle altyd vir die goeie te beywer, en nie net wanneer ek by julle is nie. My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle, totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek was nou by julle, en kon met 'n ander stemtoon met julle praat, want ek is raadop met julle! Sê vir my, julle wat onder die gesag van die wet wil staan, luister julle dan nie na die wet nie? Want daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin, en een by 'n vrou wat vry was. Die slavin se seun is op 'n natuurlike manier verwek, maar die vrou wat vry is se seun op grond van 'n belofte. Om dit allegories te stel: Hierdie twee vroue verteenwoordig twee verbonde: die een wat van die berg Sinai af kom, bring slawe voort; dit is Hagar. En Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië; sy verteenwoordig die huidige Jerusalem, omdat sy en haar kinders slawe is. Maar die Jerusalem daarbo is vry; sy is ons moeder! Want daar staan geskryf: “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte skenk nie! Jubel en juig, jy wat nie geboortepyne ken nie! Want die baie kinders van die verlate vrou is meer as dié van die vrou met 'n man.” En julle, broers, is, net soos Isak, kinders van die belofte. Maar, soos hy wat op 'n natuurlike manier verwek is, destyds die een vervolg het wat deur die werking van die Gees verwek is, so gebeur dit ook nou. Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrou wat vry is, erf nie!” Daarom, broers, is ons nie kinders van die slavin nie, maar van die vrou wat vry is. Vryheid is waarvoor •Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie! Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle julle laat besny, sal •Christus vir julle waardeloos wees. Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. Julle wat op grond van die wet geregverdig wil word, julle is van Christus afgesny – julle het die genade verbeur! Want dit is deur die Gees, op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is. Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te bly? Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 'n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie anders as ek sal dink nie; maar die een wat julle in verwarring bring, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees. En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself heeltemal ontman! Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie! Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie. Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie. Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie. Almal wat aan •Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly. Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie. Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van •Christus. As iemand werklik meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. Elkeen moet sy eie dade beoordeel. Dan sal hy trots kan wees slegs wat homself betref, en nie wat 'n ander persoon betref nie; want elkeen moet sy eie las dra. Wie onderrig in die Woord ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit. Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig. Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring, In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges, hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul. Julle was dood deur die oortredings en sondes waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. Onthou dat julle in daardie tyd sonder •Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot 'n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene. Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God. Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek. Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang. Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat •Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die •heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God. Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, aan Hom kom toe die heerlikheid in die •kerk en in •Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. •Amen. Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here 'n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde. Dit sê en bevestig ek dan in die Here: Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie. Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is, deur die hardheid van hulle harte. Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid, om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg. Maar julle het •Christus nie so leer ken nie. Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware •geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is. Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie. Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. Nie 'n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder 'n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in •Christus julle ook vergewe het. Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders, en leef in liefde, net soos •Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as 'n offergawe aan God, as 'n offerande met 'n aangename geur. Maar, soos dit •heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie, ook nie van skandelikhede en dwase of lawwe praatjies, wat alles onvanpas is nie, maar eerder van danksegging. Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is 'n afgodedienaar – het 'n erfdeel aan die •koninkryk van Christus en van God nie. Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig! Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en •geregtigheid en waarheid. Beproef wat vir die Here aanneemlik is. Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie; stel dit eerder aan die kaak. Want die dinge wat deur hulle in die geheim gedoen word – selfs net om daaroor te praat, is skandelik. Tog word alles wat deur die lig ontmasker word, openbaar; immers, alles wat sigbaar word, is lig. Daarom word gesê: Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood en •Christus sal sy lig oor jou laat skyn. Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus •Christus dank. Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir •Christus. Vroue, wees onderdanig aan julle mans, soos aan die Here, omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die •kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. Maar soos die kerk onderdanig is aan Christus, so ook moet die vroue in alle opsigte aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy •kerk. Ons is immers lede van sy liggaam. “Om hierdie rede sal 'n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees.” Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk. Maar dit geld ook vir een en almal van julle: Laat elkeen sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet; en laat die vrou haar man eerbiedig. Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort. “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met 'n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy 'n lang lewe op aarde sal hê.” En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here. Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan •Christus – nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen, terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie. Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman. En julle, eienaars, tree net so op teenoor die slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en dat Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie. Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid, en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – hiervoor is ek 'n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet. Sodat julle kan weet wat my omstandighede is, en wat ek doen – alles sal Tigikus, die geliefde broer en getroue dienskneg van die Here, julle vertel. Juis hiervoor stuur ek hom na julle, sodat julle van ons omstandighede kan weet, en sodat hy julle harte kan bemoedig. Vrede vir die broers, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus •Christus. Sy genade bly met almal wat vir ons Here Jesus Christus onverganklik liefhet. Paulus en Timoteus, diensknegte van •Christus Jesus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, en ook die opsieners en diakens: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van •Christus Jesus. Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap, sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade. Want God is my getuie hoe ek met die innigheid van Christus Jesus intens na julle almal verlang. Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van •geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God. Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer. Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig. Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid. Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig, maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak. Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins; maar as my liggaam bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal kan werk. Ek weet werklik nie wat om te kies nie. Ek is in 'n tweestryd gewikkel: Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Aan die ander kant is dit ter wille van julle noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly. Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde kan ervaar. So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem. Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van •Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie, en julle in geen opsig deur julle teenstanders laat afskrik nie. Vir hulle is dit 'n teken van ondergang, maar vir julle is dit 'n teken van verlossing – en dit kom van God. Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly. Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het, en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry. Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader. Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my. Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het. Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie. Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie. Julle weet hoe Timoteus homself bewys het, hoe hy soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my die evangelie bedien het. Ek hoop dus om hom te stuur, so gou as wat ek weet wat my omstandighede gaan wees. Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou sal kom. Ek ag dit noodsaaklik om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant, my helper in nood, na julle te stuur. Hy het immers gedurig na julle almal verlang en was baie ontsteld omdat julle gehoor het dat hy siek geword het. Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God het Hom ontferm, nie net oor hom nie, maar ook oor my, sodat ek nie een verdriet ná die ander sou ervaar nie. Daarom stuur ek hom nog dringender terug, sodat julle hom kan sien en weer bly kan wees, en ek minder bekommerd. Ontvang hom dan in die Here met groot blydskap, en respekteer mense soos hy, want deur sy werk vir Christus het hy na aan die dood gekom: Hy het sy lewe gewaag om, waar julle hulp aan my tekort geskiet het, dit aan te vul. Verder, my broers, wees bly in die Here. Om dieselfde dinge aan julle te skryf, is nie vir my moeite nie, en aan julle gee dit vastigheid. Waak teen die honde! Waak teen die kwaadstokers! Waak teen die afsnyding! Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op •Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer – Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n •Fariseër, wat ywer betref, 'n vervolger van die •kerk, wat •geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het. Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van •Christus. Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink. Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag. Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Homself te onderwerp. Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here. Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees. Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag. En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! •Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broers wat hier by my is, stuur vir julle groete. Al die •heiliges, veral dié van die keiser se huishouding, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees! Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die •koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het. Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk. Ek wil hê julle moet weet hoe 'n groot stryd ek het – vir julle, vir diegene in Laodisea, en vir diegene wat my nog nie van aangesig tot aangesig gesien het nie. Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde saamgebind bemoedig mag word, en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik •Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle met slinkse argumente om die bos sal lei nie. Al is ek wel nie liggaamlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle, en baie bly om te sien hoe ordelik julle optree, en hoe vas julle geloof in Christus is. Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het. Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom. As julle saam met •Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard. As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank. Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie. Slawe, julle moet julle aardse eienaars in alle opsigte gehoorsaam – nie met oëdiens asof julle mense wil behaag nie, maar met 'n opregte hart, uit ontsag vir die Here. Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie, in die wete dat julle 'n erfdeel as beloning van die Here sal ontvang; want julle staan in diens van die Here •Christus. Elkeen wat verkeerd doen, sal immers vir sy verkeerde dade vergeld word; niemand word volgens die uiterlike beoordeel nie. Julle, eienaars, julle moet aan julle slawe gee wat reg en billik is, in die wete dat julle ook 'n Eienaar in die hemel het. Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. Bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons 'n deur vir die Woord sal oopsluit, om die misterie van •Christus te verkondig – dit waarvoor ek in boeie is – en bid dat ek dit met die regte woorde sal kan verduidelik. Tree met wysheid teenoor buitestanders op, en koop die tyd uit. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met •sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om 'n ieder en 'n elk te antwoord. Tigikus, die geliefde broer, getroue dienaar en medewerker in die Here, sal alles oor my omstandighede aan julle bekend maak. Juis hiervoor stuur ek hom na julle, sodat julle van ons omstandighede kan weet, en sodat hy julle harte kan bemoedig. Ek stuur hom saam met Onesimus, die getroue en geliefde broer, wat van julle af kom. Hulle sal julle alles van ons omstandighede hier vertel. Aristargus, my medegevangene, stuur groete vir julle, en ook Markus, Barnabas se neef. Oor hom het julle reeds opdragte ontvang – wanneer hy by julle kom, verwelkom hom. Dieselfde geld ook Jesus, wat Justus genoem word. Van diegene wat uit die besnydenis kom, is hulle die enigste medewerkers vir die •koninkryk van God, en hulle het 'n troos vir my geword. Epafras, een van julle, 'n dienskneg van •Christus Jesus, stuur vir julle groete. Hy worstel voortdurend vir julle in sy gebede, dat julle volkome en met volle oortuiging staande mag bly in alles wat God wil. Ek getuig van hom dat hy baie moeite doen vir julle en die mense in Laodisea en Hiërapolis. Lukas, die geliefde dokter, en Demas groet julle. Groet die broers in Laodisea, en ook Nimfa, en die •gemeente wat in haar huis bymekaarkom. En wanneer hierdie brief by julle voorgelees is, sorg dat dit ook in die gemeente van Laodisea voorgelees word, en dat julle ook die brief wat van Laodisea af kom, voorlees. Sê ook vir Argippus: “Let op die bedieningsopdrag wat jy van die Here ontvang het, sodat jy dit uitvoer.” Paulus, Silvanus en Timoteus, aan die •gemeente van die Thessalonisense, in God die Vader en die Here Jesus •Christus: Genade vir julle en vrede. Broers, julle vir wie God liefhet, ons weet van julle verkiesing; want ons evangelie het nie alleen deur die woord nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en in volle versekering na julle gekom. Net so weet julle hoe ons optrede by julle was: tot julle voordeel. En julle het ons voorbeeld gevolg en dié van die Here, nadat julle die woord, ten spyte van groot verdrukking, met blydskap van die Heilige Gees ontvang het, met die gevolg dat julle 'n voorbeeld vir al die gelowiges in Macedonië en Agaje geword het. Die woord van die Here het immers van julle af, nie net in Macedonië en Agaje weerklink nie – julle geloof in God het inderdaad na elke plek versprei. Gevolglik het ons nie nodig om meer iets daaroor te sê nie. Hulle self vertel oor ons van die besondere ontvangs wat ons by julle gekry het: Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom. Julle weet tog, broers, dat ons besoek aan julle nie vergeefs was nie; maar alhoewel ons, soos julle weet, vroeër in Filippi gely het en beledig is, het ons vrymoedigheid in ons God gehad om julle van God se evangelie te vertel, al was dit te midde van baie teenstand. Want ons pleidooi is nie uit dwaling, nie uit onsuiwerheid en nie met bedrog nie; maar, soos ons deur God goedgekeur is, sodat die evangelie aan ons toevertrou kon word, so praat ons ook nie om mense tevrede te stel nie, maar God, Hy wat ons harte toets. Want, soos julle weet, het ons ons nog nooit met vleiery opgehou nie, en ook nie met valse motiewe van inhaligheid nie – God is ons getuie! Ook het ons nie die eer van mense gesoek nie, nóg van julle, nóg van ander, alhoewel ons as •apostels van •Christus eise kon stel. Maar ons het klein kindertjies in julle midde geword. Soos wanneer 'n moeder haar eie kinders voed en koester, en omdat ons op hierdie wyse na julle verlang, so het ons dit goedgedink om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar selfs ook ons eie lewens – omdat julle vir ons geliefd geword het. Julle onthou tog ons moeite en harde werk, broers; terwyl ons bedags en snags gewerk het, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en ook God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons geword het vir julle wat glo. Net so weet julle ook hoe ons vir elkeen van julle soos 'n vader vir sy eie kinders was, terwyl ons julle vermaan en bemoedig, en aanspoor om 'n lewe te lei wat dié God waardig is wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het. En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as 'n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God – dié Woord wat werksaam is in julle wat glo. Want julle, broers, het die voorbeeld gevolg van die •gemeentes van God in Christus Jesus wat in Judea is, omdat julle dieselfde dinge onder julle eie mense gely het as hulle onder die Judeërs, hulle wat die Here Jesus en die profete doodgemaak, en ons ernstig vervolg het, wat God nie tevrede stel nie, en vyandig teenoor alle mense is, en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom! Maar, broers, aangesien ons vir 'n kort tydjie van julle geskei is – in persoon, maar nie in ons harte nie – het ons werklik met groot verlange alles in ons vermoë gedoen om julle van aangesig tot aangesig te sien. Daarom wou ons na julle kom – ek, Paulus, weer en weer – maar Satan het ons verhinder. Want watter hoop of vreugde of kroon van roem, behalwe juis julle, sal daar vir ons by die Here Jesus wees wanneer Hy kom? Want julle is ons eer en vreugde! Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons dit goedgedink om alleen in Athene agter te bly, en het ons Timoteus gestuur, ons broer en medewerker van God vir die evangelie van •Christus, om julle in julle geloof te versterk en te bemoedig, sodat niemand deur hierdie beproewinge ontstel word nie. Julle weet tog self dat ons daartoe bestem is. Want ook toe ons by julle was, het ons herhaaldelik vooraf vir julle gesê dat ons verdruk sal word, iets wat, soos julle weet, inderdaad gebeur het. Daarom het ek ook, toe ek dit nie langer kon verduur nie, vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof gaan, en of die verleier julle nie miskien verlei het, en ons moeitevolle arbeid vergeefs was nie. Maar vandat Timoteus van julle af by ons aangekom en die goeie nuus van julle geloof en liefde aan ons oorgedra het – dat julle deurentyd goeie herinneringe aan ons het en daarna smag om ons te sien, soos ons vir julle – is ons, wat julle betref, broers, te midde van al ons nood en verdrukking, vertroos deur julle geloof. Want nou leef ons, mits julle vas in die Here bly staan. Watter dank kan ons immers na behore aan God bring oor julle, vir elke vreugde oor julle wat ons voor ons God het? Terselfdertyd smeek ons bedags en snags baie ernstig om julle van aangesig tot aangesig te mag sien, en om te kan voorsien in wat aan geloof by julle ontbreek. En mag God ons Vader self, en ons Here Jesus, ons pad na julle rig; mag die Here julle liefde vir mekaar en vir almal laat toeneem en oorvloedig maak, soos ons liefde vir julle ook is. Mag Hy julle harte versterk, sodat julle met die koms van ons Here Jesus, saam met al sy heiliges, onberispelik in heiligheid voor ons God en Vader kan wees. •Amen. Verder dan, broers, vra ons julle, en spoor ons julle ter wille van die Here Jesus aan: Julle is deur ons onderrig oor hoe julle moet leef om God te behaag; julle leef inderdaad reeds hiervolgens, maar julle moet nog al hoe meer so leef. Julle weet tog watter voorskrifte ons vir julle gegee het deur die Here Jesus. Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op 'n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge. God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie 'n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. Oor die broederliefde is dit nie nodig dat ek vir julle skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. Julle het inderdaad ook al die broers in die hele Macedonië lief. Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, en dit vir julle 'n saak van eer te maak om rustig te wees, julle met julle eie sake te bemoei, en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie. Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel, en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in •Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde. Oor die tye en geleenthede, broers, is dit nie nodig dat ons aan julle skryf nie, want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos 'n dief in die nag kom. Wanneer hulle sê, “Daar is vrede en veiligheid,” kom daar skielik vernietiging oor hulle, soos geboortepyne 'n swanger vrou oorval, en hulle sal beslis nie ontkom nie. Maar julle, broers, is nie in die duisternis nie, sodat dié dag julle nie soos 'n dief sal oorval nie. Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag. Ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en nugter wees! Want hulle wat slaap, slaap snags, en diegene wat hulle dronk drink, doen dit snags. Laat ons wat van die dag is, egter nugter wees, noudat ons die borsplaat van geloof en liefde, en die helm van hoop op verlossing, aangetrek het. Want God het ons nie tot veroordeling bestem nie, maar om deur ons Here Jesus •Christus verlossing te verkry, Hy wat ter wille van ons gesterf het, sodat ons, of ons wakker is of slaap, saam met Hom kan leef. Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid. En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus •Christus kom. Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen. Broers, bid ook vir ons. Groet al die broers met 'n heilige soen. Ek versoek julle plegtig voor die Here dat hierdie brief aan al die broers voorgelees word. Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle! Paulus en Silvanus en Timoteus, aan die •gemeente van Thessalonika in God, ons Vader, en die Here Jesus •Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem. Daarom spog ons op ons beurt onder die •gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die •koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, in 'n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy •heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word – omdat ons getuienis teenoor julle geglo is. Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus •Christus. Wat die koms van ons Here Jesus •Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die •tempel gaan sit en hom as God voordoen. Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie? En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word. Ons, egter, broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, en deurdat julle die waarheid glo. Hy het julle ook daartoe geroep om deur ons verkondiging van die evangelie die heerlikheid van ons Here Jesus •Christus te verkry. Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur 'n woord of 'n brief van ons af. En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk. Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie. Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar. Deur die Here vertrou ons dat julle ook dit doen, en sal aanhou doen, wat ons julle beveel het. Mag die Here julle harte rig op die liefde van God en die volharding van •Christus. Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie – nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg. Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. Maar julle, broers, julle moenie moeg word om goed te doen nie. As iemand egter nie ons opdrag in hierdie brief gehoorsaam nie, merk hom, en vermy hom, sodat hy skaam kry. Julle moet hom egter nie as 'n vyand beskou nie, maar vermaan hom as 'n broer. Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal. Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus, in opdrag van God, ons Verlosser, en van Christus Jesus, ons hoop, aan Timoteus, my ware kind in die geloof: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here. Soos ek by jou aangedring het toe ek na Macedonië vertrek het, moet jy in Efese bly, sodat jy sekere mense opdrag kan gee om nie vreemde leringe te versprei, en om hulle nie met mites en eindelose geslagsregisters op te hou nie. Hierdie dinge bevorder eerder sinlose argumente as God se plan, wat Hy deur die geloof ten uitvoer wil bring. Die doel van die opdrag is liefde uit 'n rein hart, 'n skoon gewete en 'n ongeveinsde geloof. Sommige het hiervan afgedwaal en in 'n niksseggende gepraat verval. Hulle wil leermeesters van die wet wees, maar hulle verstaan nie wat hulle sê, of dit waarop hulle aandring nie. Maar ons weet dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik, omdat hy besef dat die wet nie bedoel is vir die •regverdige nie, maar juis vir die wetteloses en ongehoorsames, vir die goddeloses en sondaars, vir die onheiliges en wêreldlinge, vir diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak en mense vermoor, Ek dank Hom wat my versterk het, •Christus Jesus, ons Here, omdat Hy my betroubaar geag het toe Hy my in sy diens aangestel het – vir my wat voorheen 'n lasteraar, 'n vervolger en 'n geweldenaar was. Nogtans is ek begenadig, omdat ek uit ongeloof onkundig opgetree het. Ons Here se genade oor my was oorvloedig, en daarmee saam ook nog die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is. Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is. Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onsterflike, onsienlike, enigste God kom toe eer en heerlikheid vir ewig en ewig. •Amen. Hierdie opdrag vertrou ek aan jou toe, my kind Timoteus, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry, met geloof en 'n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het. Onder hulle is Himeneus en Aleksander, wat ek aan Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie. Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens •Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig. Ek verwag van die mans dat hulle op elke plek sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en rusie. So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie, maar – soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid – met goeie werke. 'n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid. Ek laat nie toe dat 'n vrou onderrig gee, of oor 'n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. Adam is immers eerste geskep, daarna Eva. En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het 'n oortreder geword. Maar sy sal verlos word te midde van kindergeboorte, mits hulle volhou om gelowig, liefdevol, heilig en ingetoë te leef. Dié uitspraak is betroubaar. As iemand na 'n amp as opsiener streef, begeer hy 'n goeie taak. 'n Opsiener moet onberispelik wees: 'n man met net een vrou, beheersd, verstandig, goed gemanierd, gasvry, en in staat om onderrig te gee. Hy moet nie 'n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou. Maar as iemand sy eie huishouding nie behoorlik kan bestuur nie, hoe sal hy na die •gemeente van God kan omsien? Hy moet nie 'n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie. Boonop moet hy 'n goeie reputasie onder die mense buite die gemeente hê, sodat hy nie in die skande en in die Duiwel se strik beland nie. Net so moet diakens hulle waardig gedra, nie uit twee monde praat nie, hulle nie oorgee aan baie wyn nie, nie inhalig wees nie, terwyl hulle met 'n skoon gewete aan die geheimenis van die geloof vashou. Maar laat hulle eers getoets word, en as hulle onberispelik bevind word, laat hulle dan as diakens optree. Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles. Diakens moet net een vrou hê, en hulle kinders en hulle eie huishoudings goed bestuur. Want wie hulle dienswerk as diakens goed doen, verwerf groot aansien vir hulleself, en verkry groot vrymoedigheid deur die geloof in •Christus Jesus. Hierdie dinge skryf ek vir jou, in die hoop om binnekort na jou toe te kom. Maar as ek vertraag word, moet jy weet hoe jy jou moet gedra in die huishouding van God: dit is die •kerk van die lewende God, 'n pilaar en 'n fondament van die waarheid. En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot: Hy is geopenbaar in 'n menslike liggaam, regverdig bewys deur die Gees, gesien deur die engele, verkondig onder die nasies, geglo in die wêreld, opgeneem in heerlikheid. Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word. Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy 'n goeie dienskneg van •Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof, en die goeie leer wat jy noukeurig navolg. Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in 'n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges. Beveel en onderrig hierdie dinge. Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in gedrag, in liefde, in betroubaarheid, in reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou toelê op voorlesing, bemoediging en onderrig. Moenie die genadegawe in jou verwaarloos wat deur profesie aan jou geskenk is toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het nie. Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees. Wees noulettend op jouself en die leer; volhard daarin; want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister. 'n Ouer man moet jy nie skerp berispe nie, maar vermaan hom soos 'n vader, en vermaan jonger mans soos broers, ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters – en dit alleen met suiwer bedoelings. Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God. Maar sy wat werklik 'n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. Beveel hulle hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige. Laat 'n weduwee op die dienslys geplaas word as sy nie jonger as sestig jaar is nie, en die vrou van een man was, as daar van haar goeie werke getuig word, as sy kinders goed grootgemaak het, as sy gasvry was, as sy die voete van •heiliges gewas het, as sy mense in verdrukking bygestaan het, as sy haar toegespits het op elke goeie werk. Maar sluit jonger weduwees uit, want wanneer hulle drange hulle weglok van •Christus, wil hulle trou; en dan word hulle veroordeel, omdat hulle hulle eerste belofte verbreek het. Boonop kom hulle in die gewoonte om ledig te wees terwyl hulle so van huis tot huis kuier, en is hulle nie net ledig nie, maar hulle skinder, en is bemoeisiek, en praat oor onvanpaste sake. Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie. Want sommige van hulle het reeds agter Satan aan afgedwaal. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, laat sy hulle help! Laat die gemeente nie belas word nie, sodat hulle ondersteuning kan gee aan dié wat werklik weduwees is. Laat die ouderlinge wat goed leiding gee, dubbele eer ontvang, veral diegene wat hard werk aan woordverkondiging en onderrig. Want die Skrif sê, “Jy mag 'n bees wat graan trap, nie muilband nie,” en “'n Arbeider is sy loon werd.” Moenie 'n klag teen 'n ouderling aanvaar nie, behalwe as twee of drie getuies dit kan bevestig. Berispe in almal se teenwoordigheid diegene wat aanhou sondig, sodat die ander ook afgeskrik kan word. Ek vermaan jou ernstig voor God en Christus Jesus en die uitverkore engele om hierdie dinge sonder vooroordeel te onderhou, en niemand te begunstig nie. Moenie iemand oorhaastig die hande oplê, en moenie deel kry aan iemand anders se sondes nie; hou jouself rein. Moenie langer net water drink nie, maar gebruik 'n bietjie wyn vir jou maag en jou gereelde ongesteldhede. Die sondes van sommige mense is baie duidelik, en loop hulle daarom vooruit op pad na die oordeel; maar ander se sondes agtervolg hulle. Net so is goeie werke baie duidelik sigbaar, en wanneer dit nie die geval is nie, kan dit nie vir lank verborge bly nie. Wie onder die slawejuk gebuk gaan, moet met alle respek teenoor hulle eienaars optree, sodat die Naam van God en die leer nie belaster word nie. Diegene wat gelowige eienaars het, mag hulle nie verag nie, omdat hulle broers is; laat hulle nog meer diensbaar wees, juis omdat dit gelowiges en geliefdes is wat dié goeie diens ontvang. Onderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. As iemand 'n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus •Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder 'n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is. Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na •geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. •Amen. Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself 'n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry. O Timoteus, bewaar jou pand! Vermy goddelose en leë praatjies, en die teenstrydighede van wat valslik as kennis bestempel word. Omdat sommige mense dit bely het, het hulle van die geloof afgedwaal. Die genade bly met julle! Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus, deur die wil van God, in ooreenstemming met die belofte van die lewe in Christus Jesus, aan Timoteus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here. Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met 'n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink. As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word. Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur. God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God. Hy het ons verlos en geroep met 'n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in •Christus Jesus aan ons geskenk, en nou is dit geopenbaar deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus, wat die dood vernietig het, en die lewe en die onverganklikheid deur die evangelie aan die lig gebring het. Hiervoor is ek as prediker, •apostel en leraar aangestel. Daarom ly ek ook hierdie dinge, maar ek skaam my nie; want ek weet in wie ek nog altyd my vertroue stel, en ek is oortuig dat Hy magtig is om die pand wat aan my toevertrou is, tot op daardie dag te bewaar. Hou, as voorbeeld van die suiwer leer, vas aan dit wat jy van my gehoor het; doen dit in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Bewaar die kosbare pand wat aan jou toevertrou is deur die Heilige Gees wat in ons woon. Jy weet dat almal in Asië, onder wie ook Figelus en Hermogenes, die rug op my gedraai het. Mag die Here barmhartigheid bewys aan Onesiforus se huisgesin, want hy het my dikwels opgebeur en hom nie vir my boeie geskaam nie; trouens, toe hy in Rome was, het hy ywerig na my gesoek en my gevind. Mag die Here gee dat hy op daardie dag barmhartigheid by Hom vind. Jy weet tog baie goed hoeveel diens hy in Efese aan my bewys het. Jy dan, my kind, wees sterk deur die genade in •Christus Jesus, en dra dit wat jy deur baie getuies van my gehoor het, oor aan betroubare mense wat bekwaam sal wees om ook ander te onderrig. Verduur jou deel van die ontbering, soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 'n Soldaat raak nie verstrik in sake van die alledaagse lewe nie, sodat hy sy bevelvoerder tevrede kan stel. Verder word 'n atleet wat aan 'n wedloop deelneem, nie bekroon as hy nie volgens die reëls meeding nie. Die landbouer wat die harde werk doen, moet eerste van die oes kry. Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge. Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos 'n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry. Dié uitspraak is betroubaar: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie. Herinner hulle aan hierdie dinge, en waarsku hulle ernstig voor God om nie te stry oor nuttelose woorde, wat dié wat dit aanhoor, ten gronde rig nie. Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.” In 'n groot huis is daar nie net goue en silwervoorwerpe nie, maar ook voorwerpe van hout en klei – sommige is vir fatsoenlike gebruik, ander onfatsoenlik. As iemand homself dan gereinig het van hierdie dinge, sal hy 'n fatsoenlike voorwerp wees: afgesonder, bruikbaar vir die Eienaar, geskik vir elke goeie werk. Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met 'n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede; maar vermy die dwase en afbrekende twisgesprekke, omdat jy weet dat dit aanleiding gee tot rusies. 'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, en hulle tot hulle sinne laat kom – vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê. Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom; want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, mense wat wel 'n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense. Want onder hulle is daar diegene wat huisgesinne binnedring, en ligsinnige vroue, oorlaai met sondes, hulle prooi maak – vroue wat voortgedryf word deur allerlei begeertes, wat altyd aan die leer is, maar nooit tot volle begrip van die waarheid kan kom nie. En soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, net so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat korrup is in hulle denke en onbetroubaar in hulle geloof. Maar hulle sal nie baie ver kom nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos dit ook met Jannes en Jambres die geval was. Jy het my egter nougeset nagevolg in leer, lewenswandel, voorneme, geloof, geduld, liefde en volharding, in vervolging en lyding, soos wat ek in Antiogië, Ikonium en Listra ervaar het. Watter vervolgings ek ook al verduur het – die Here het my van alles gered! Almal wat godvresend in •Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word. Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak. Ek vermaan jou ernstig voor God en •Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies gaan oordeel, en ook met die oog op sy verskyning en sy koninkryk: Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. Want daar kom 'n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Maar bly jy in alles nugter, verduur jou lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, beoefen jou bediening voluit. Want ek word reeds as •drankoffer uitgegiet, en die tyd van my dood is naby. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. Nou wag die oorwinningskrans van •geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet. Doen jou bes om gou na my toe te kom, want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië. Net Lukas is nog by my. Gaan haal vir Markus, en bring hom saam met jou, want hy is vir my baie nuttig in die bediening. Tigikus het ek na Efese gestuur. Wanneer jy kom, bring die mantel saam wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en ook die •boekrolle, veral die perkamente. Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan. Tydens my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie; inteendeel, almal het my in die steek gelaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! •Amen. Stuur groete vir Priska en Akwila, en Onesiforus se huisgesin. Erastus het in Korinthe gebly, Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus en Pudens en Linos en Claudia en al die broers stuur vir jou groete. Die Here bly met jou gees! Die genade bly met julle! Paulus, 'n dienskneg van God en •apostel van Jesus •Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid, in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het, en wat sy woord op sy eie tyd bekend gemaak het deur die verkondiging, wat in opdrag van God, ons Verlosser, aan my toevertrou is – aan Titus, my egte seun op grond van ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God, ons Vader, en Christus Jesus ons Verlosser. Hiervoor het ek jou in Kreta laat agterbly: dat jy onafgehandelde sake kan afhandel, en in elke dorp ouderlinge kan aanstel, soos ek aan jou opgedra het. Dit moet iemand wees wat onberispelik is, 'n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie. Want 'n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie, maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd. Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys. Want daar is baie opstandiges, praatjiesmakers, en mense wat ander mislei, veral onder hulle wat besny is, van wie die mond gesnoer moet word, mense wat hele huishoudings omvergooi deur ontoelaatbare dinge te leer, en dit vir skandelike gewin. Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: Kretensers – altyd leuenaars, slegte ondiere, lui vrate! Hierdie getuienis is waar. Daarom, spreek hulle skerp aan, sodat hulle gesond kan word in die geloof, en hulle nie meer besig hou met Joodse mites en menslike voorskrifte wat van die waarheid afwyk nie. Alles is rein vir dié wat rein is, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie: sowel hulle denke as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade; hulle is afstootlik en onversetlik, onbekwaam om enigiets goeds te doen. Maar jy, verkondig jy wat pas by die gesonde leer. Ouer mans moet nugter wees, waardig, verstandig – gesond in geloof, liefde en standvastigheid. Net so moet ouer vroue se optrede wees soos dit •heiliges betaam. Hulle moet nie kwaadpraters wees, of verslaaf aan wyn nie, maar moet onderrig gee in wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig, kuis, toegewy aan hulle huishoudings, goedaardig, onderdanig aan hulle mans, sodat die woord van God nie belaster word nie. Vermaan ook so die jonger mans om in alle opsigte verstandig op te tree. Stel jy self in alles 'n voorbeeld deur goeie dade, onvervalste leer en waardigheid, gesonde en onaanvegbare prediking, sodat 'n teenstander beskaamd mag staan, en niks slegs het om oor ons te sê nie. Slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanig wees: hulle tevrede stel, nie teenpraat nie, en nie steel nie, maar toon dat alle betroubaarheid goed is, sodat hulle in alles die leer van God, ons Verlosser, aantreklik maak. Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus •Christus – Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom 'n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen. Praat oor hierdie sake met volle gesag, bemoedig en wys tereg. Moenie dat iemand op jou neersien nie. Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk, niemand te belaster nie, om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te betoon aan alle mense. Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit •geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus •Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop. Dié uitspraak is betroubaar. Ek wil hê dat jy hierdie dinge moet benadruk, sodat hulle wat in God glo, daarop bedag sal wees om hulle aan goeie werke toe te wy. Hierdie dinge is goed en voordelig vir die mense. Vermy egter onsinnige dispute en geslagsregisters en stryery en haarklowery oor die wet, want dit is nutteloos en sinloos. As iemand verdeeldheid saai, wys hom ná 'n eerste en tweede vermaning weg, omdat jy weet dat so 'n persoon op 'n verkeerde pad is en sonde doen; hy veroordeel homself. Wanneer ek Artemas of Tigikus na jou stuur, haas jou om na my te kom in Nikopolis, want ek het besluit om daar te oorwinter. Help ook vir Senas, die regsgeleerde, en vir Apollos, na die beste van jou vermoë, vooruit op hulle reis, sodat hulle niks kortkom nie. Ons mense moet ook leer om hulle met goeie werke besig te hou, vir die voorsiening van noodsaaklike behoeftes, sodat hulle lewe nie vrugteloos sal wees nie. Almal by my stuur vir jou groete. Groet hulle wat vir ons in die geloof liefhet. Die genade bly met julle almal! Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, en ons broer Timoteus, aan ons geliefde medewerker Filemon, en ook aan ons suster Affia en ons medestryder Argippus, en die •gemeente wat in jou huis saamkom: Genade vir julle, en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou dink in my gebede, omdat ek gehoor het van jou liefde vir al die heiliges, en van jou geloof in die Here Jesus. Ek bid dat jou deelname aan die geloof daadkragtig mag wees, deur jou kennis van elke goeie saak wat daar onder ons is, tot eer van •Christus. Ek is inderdaad baie bly en bemoedig oor jou liefde, broer, omdat die hart van die heiliges deur jou verkwik is. Daarom, al het ek in •Christus groot vrymoedigheid om jou te beveel wat jy behoort te doen, rig ek, Paulus, op grond van die liefde eerder 'n versoek aan jou, juis omdat ek so 'n ou man is, en nou ook nog 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ek pleit by jou vir my geestelike kind, Onesimus, wat ek tydens my gevangenskap verwek het. Hy het destyds vir jou geen voordeel ingehou nie, maar nou hou hy vir jou en vir my groot voordeel in. Ek het hom na jou teruggestuur, hy wat my eie hart is! Ek wou hom graag by my hou, sodat hy my in jou plek kon dien, terwyl ek ter wille van die evangelie in boeie is. Maar sonder jou instemming wou ek niks doen nie, sodat jy jou goeie daad nie uit dwang nie, maar vrywillig sal doen. Dalk was hy juis om hierdie rede 'n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf, as 'n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here. Indien jy my as deelgenoot beskou, verwelkom hom asof dit ek is. En as hy jou enige skade berokken het of jou iets skuld, sit dit op my rekening. En dan praat ek nie eers daarvan dat jy jouself aan my verskuldig is nie. Ja, broer, mag ek tog in die Here van jou hierdie voordeel geniet; verkwik my hart in Christus. Met volle vertroue in jou gehoorsaamheid skryf ek vir jou, in die wete dat jy selfs meer sal doen as wat ek vra. Maak terselfdertyd ook die gastekamer vir my gereed, want ek verwag om deur julle gebede aan julle geskenk te word. Epafras, my medegevangene in •Christus Jesus groet jou. So ook my medewerkers Markus, Aristargus, Demas en Lukas. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees! In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep. Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese. Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; en nadat Hy die reiniging van sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes. Hy is hoog bo die engele verhef, net soos wat Hy 'n Naam geërf het wat uitnemender as hulle s'n is. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” En ook: “Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees.” Maar wanneer Hy die •Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy: “En laat al die engele van God Hom aanbid.” Oor die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde, en sy dienaars vuurvlamme.” Maar vir die Seun sê Hy: “U troon, o God, is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk! U het •geregtigheid lief, en U haat wetteloosheid; daarom, o God, het u God U gesalf met olie van vreugde, meer as u vriende.” En: “U het aan die begin, o Here, die aarde se fondamente gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt, en soos 'n mantel sal U hulle oprol; soos 'n kledingstuk sal hulle vervang word, maar U bly dieselfde, en u jare sal nie tot 'n einde kom nie.” Aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.” Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie? Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie. Want as die boodskap wat deur engele verkondig is, inderdaad bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatige straf ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot verlossing verontagsaam? Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het. Want Hy het die komende wêreld waarvan ons praat, nie aan engele onderwerp nie. Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê: “Wat is die mens dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U na hom omsien? U het hom vir 'n kort rukkie minder as engele gemaak, en hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles onder sy voete gestel. ” Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar. Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring. Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, wanneer Hy sê: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig, in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” En ook: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” En ook: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help. Daarom, heilige broers, deelgenote van 'n hemelse roeping, let noukeurig op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis – Hy wat getrou is aan die Een wat Hom aangestel het, soos wat ook Moses getrou was in die hele huis van God. Hy is inderdaad groter heerlikheid waardig geag as Moses – soos wat die bouer van die huis meer aansien het as die huis self. Elke huis word immers deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. Moses was wel as tempeldienaar getrou in God se hele huis, tot 'n getuienis van wat verkondig sou word, maar •Christus was as Seun getrou oor sy huis; en ons is sy huis as ons bly vashou aan die vrymoedigheid en hoop waarop ons ons beroem. Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking in die woestyn, toe julle voorouers My versoek en beproef het nie, al het hulle my dade gesien – veertig jaar lank. Daarom het my toorn ontvlam teenoor hierdie geslag, en het Ek gesê, ‘In hulle harte is hulle altyd op 'n dwaalspoor, en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’ So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ” Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit 'n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie. Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Ons het inderdaad deelgenote van •Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue – soos gesê word: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie.” Wie was dit wat gehoor het, maar nietemin in opstand gekom het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte uitgetrek het nie? Op wie was Hy veertig jaar lank toornig? Was dit nie op hulle wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn gelê het nie? Vir wie, behalwe hulle wat ongehoorsaam was, het Hy gesweer dat hulle beslis nie in sy rus sal ingaan nie? Ons sien dus dat hulle vanweë ongeloof nie in staat was om in sy rus in te gaan nie. Laat ons daarom versigtig wees, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog bly staan, dat dit nie mag blyk dat een van julle agtergebly het nie. Want net soos aan hulle, is die goeie boodskap ook aan ons verkondig. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gebaat nie, omdat hulle nie deur die geloof verenig is met dié wat dit wel gelowig aangehoor het nie. Ons wat tot geloof gekom het, gaan immers wel die rus in – soos Hy gesê het, “So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ” al was God se werke reeds vanaf die grondlegging van die wêreld afgehandel. Hy het immers êrens aangaande die sewende dag gesê: “God het op die sewende dag van al sy werke gerus.” En in hierdie gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!” Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – bepaal Hy weer 'n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!” As Josua hulle dan tot rus gebring het, sou Hy nie gepraat het van 'n ander dag daarna nie. Daar bly dus steeds 'n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord. Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die •Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word. Elke hoëpriester wat uit mense geneem word, word immers ook ter wille van mense aangestel vir die offerdiens voor God, sodat hy ter wille van die sondes geskenke en offers kan bring. Hy kan deernis hê met dié wat in onkunde dwaal, aangesien hy self ook aan swakheid blootgestel is. Juis daarom moet hy, net soos vir die volk, ook vir homself offers vir sy sondes bring. Niemand eien die eer vir homself toe nie, maar hy word, net soos Aäron, deur God geroep. So ook het •Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” So sê Hy ook op 'n ander plek: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword, aangesien Hy deur God aangewys is as “Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”. Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister. Want terwyl julle teen hierdie tyd reeds leraars moes gewees het, het julle nou weer nodig dat iemand julle die grondbeginsels van die uitsprake van God leer, en het julle weer behoefte aan melk, en nie vaste kos nie. Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is 'n suigeling. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad. Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande •Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, van onderrig oor reinigingsrituele, oplegging van hande, opstanding uit die dood, en van ewige oordeel. En juis dit sal ons doen, as God dit toelaat. Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die •Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak. Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en 'n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën. Maar wanneer dit dorings en dissels voortbring, is dit nutteloos en naby vervloeking. Die einde daarvan is verbranding. Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing. God is immers nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle arbeid, en van die liefde wat julle vir sy Naam betoon het, deurdat julle die •heiliges bedien het – en nog steeds bedien – nie. Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf. Toe God aan Abraham 'n belofte gemaak het, het Hy, aangesien Hy niemand belangriker gehad het om by te sweer nie, by Homself gesweer. Hy het gesê: “Ek sal jou ryklik seën, en jou veelvuldig laat vermeerder.” En so, terwyl hy geduldig gewag het, het hy die belofte verkry. Mense sweer immers by iemand belangriker as hulle, en die eed tot bevestiging beteken vir hulle die einde van alle teenspraak. Omdat God vir die erfgename van die belofte nog soveel sekerder wou aantoon hoe onveranderlik sy besluit was, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, 'n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. Ons het hierdie hoop as 'n veilige en stewige anker van die •siel, wat tot aan die binnekant van die voorhangsel ingaan. Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het, en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek. Hierdie Melgisedek, koning van Salem, 'n priester van die Allerhoogste God, het Abraham tegemoetgegaan toe hy op pad terug was, nadat hy die konings verslaan het, en hom geseën. Aan hom het Abraham 'n tiende deel van alles gegee. In die eerste plek was hy, as sy naam vertaal word, “Koning van •Geregtigheid”, maar daarbenewens was hy ook “Koning van Salem”, dit is “Koning van Vrede”. Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde, maar, soortgelyk aan die •Seun van God, bly hy priester vir altyd. Kyk net hoe belangrik was hierdie man, dat selfs Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste buit aan hom gegee het! Die nakomelinge van Levi wat die priesterskap ontvang, het 'n gebod dat hulle, volgens wet, tiendes moet ontvang van die volk, naamlik hulle broers, alhoewel dié afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van hulle afstam nie, het tiendes van Abraham ontvang, en hierdie draer van die beloftes geseën. Sonder enige teenspraak, word die mindere tog deur die meerdere geseën. In die een geval ontvang sterflike mense tiendes, maar in die ander geval hy van wie getuig word dat hy leef. Mens kan selfs sê, ook Levi, wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; want Levi was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgisedek Abraham tegemoetgegaan het. As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie. Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek – een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. Daar word trouens getuig: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Aan die een kant is dit die opheffing van die voormalige gebod, omdat dit swak en nutteloos was – die wet het mos niks vervolmaak nie – maar aan die ander kant is dit die aanbreek van 'n beter hoop, waardeur ons tot God nader. Wat hierdie saak betref, dit het nie sonder eedswering plaasgevind nie: Hulle het wel sonder eedswering priesters geword, maar Hy het dit inderdaad met eedswering geword, deur God wat vir Hom gesê het: “Die Here het 'n eed afgelê, en dit sal Hom nie berou nie: Jy is priester vir ewig.” Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword. Boonop was daar baie ander mense wat priesters geword het, omdat die priesters deur die dood verhinder is om aan te bly; maar omdat Hy tot in ewigheid bly, besit Hy 'n priesterskap wat nie tot 'n einde kom nie. Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. So 'n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as 'n offer gebring het. Die wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan, maar die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is. Die hoofsaak van wat gesê is, is dat ons só 'n Hoëpriester het: Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemele, 'n bedienaar in die heiligdom, ja, in die ware •tabernakel wat die Here, nie 'n mens nie, opgerig het. Elke hoëpriester word tog aangestel om gawes en offers te bring. Daarom was dit noodsaaklik dat ook Hy iets moes hê om te offer. As Hy dan op aarde was, sou Hy nie 'n priester gewees het nie, aangesien daar priesters is wat die gawes volgens wet bring. Hulle bediening is 'n afbeelding en afskaduwing van die hemelse, net soos die goddelike opdrag wat Moses ontvang het toe hy die ware tabernakel moes oprig, en God vir hom gesê het: “Let op dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat vir jou op die berg gewys is.” Maar nou het Jesus 'n meer verhewe bediening verkry, in dié sin dat Hy ook Middelaar is van 'n uitnemender verbond, wat op grond van uitnemender beloftes regsgeldigheid verkry het. Want as daardie eerste een foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie. Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê: “Kyk daar kom dae, sê die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het op die dag toe Ek hulle met my hand gegryp het om hulle uit Egipte uit te lei nie; want hulle het nie by my verbond gebly nie, en Ek het hulle geïgnoreer, sê die Here. Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee, en op hulle harte sal Ek dit neerskryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Niemand sal meer sy medeburger of sy broer onderrig en sê, ‘Ken die Here!’ nie, omdat hulle almal My sal ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle. Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie. ” Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning. Die eerste verbond het bepalings vir aanbidding gehad, asook 'n heiligdom wat aards was. Die voorste tent was toegerus met die kandelaar, en die tafel met die •vertoonbrode, en is die “Heilige” genoem. En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die •verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond; en bo-op was die gerubs van heerlikheid, wat die versoendeksel oorskadu het. Hieroor kan ons egter nie nou in besonderhede praat nie. Met hierdie dinge dan so ingerig, gaan die priesters gereeld die voorste tent binne om hulle rituele diens te verrig. Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie. Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg na die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie. Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie. Dit het net gegaan oor kos en drank, en verskillende reinigingsrituele – bepalings vir die liggaam, wat opgelê is tot op die bestemde tyd van regstelling. •Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur 'n uitnemender en meer volmaakte •tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie. Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig. Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien? Aangesien daar 'n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Waar 'n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig. 'n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie. Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie. Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.” En op dieselfde wyse het hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel. Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie. Dit was dus nodig dat die afbeeldings van wat in die hemele is, deur hierdie dinge gereinig word – maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie 'n mensgemaakte heiligdom, 'n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn; ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met 'n ander se bloed ingaan – aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel. En net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel, so sal •Christus, nadat Hy eenmalig geoffer is om die sondes van baie te dra, 'n tweede maal verskyn aan hulle wat Hom verwag, nie weens sonde nie, maar om hulle te verlos. Die wet bevat immers net 'n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie 'n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem. Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld: “Offerande en offergawe wou U nie hê nie, maar 'n liggaam het U vir My voorberei; ja, •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie tevrede gestel nie. Toe het Ek gesê, ‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God! Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ” Eers sê Hy hierbo, “Offerandes en offergawes”, en “brandoffers en reinigingsoffers wou U nie hê, en het U nie tevrede gestel nie” – dit is wat volgens die wet geoffer word. Dan sê Hy: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen!” Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus •Christus, eens en vir altyd. Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie. Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. Laat ons daarom ingaan met 'n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van 'n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom! Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer 'n offer vir ons sondes oor nie, maar wel 'n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. Wanneer iemand die •Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? Want ons ken Hom wat gesê het: “Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld.” en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.” Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God! Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, 'n geweldige stryd van lyding deurstaan het. Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle 'n beter en blywende besitting het. Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou 'n groot beloning in. Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry. Want nog net “'n baie kort rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. My regverdige sal deur geloof leef. As hy hom egter sou onttrek, het Ek geen behae in hom nie.” Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe. Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Gevolglik het dit wat gesien word, nie uit die sigbare ontstaan nie. Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, 'n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en 'n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see. Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei. Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het. Deur geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met betrekking tot toekomstige dinge. Deur geloof het Jakob, terwyl hy sterwend was, elkeen van die seuns van Josef geseën, en “het hy in aanbidding gebuig oor die bopunt van sy staf”. Deur geloof het Josef, toe hy op sy einde was, van die uittog van die kinders van Israel melding gemaak, en het hy opdrag gegee in verband met sy beendere. Deur geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande lank deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die kindjie mooi was, en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie. Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die •Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien. Deur geloof het hy die Pasga ingestel en die bloed laat aansmeer, sodat die doodsengel nie aan hulle •eersgeborenes sou raak nie. Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë land, terwyl die Egiptenare, toe hulle dit probeer doen het, verdrink het. Deur geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar vir sewe dae rondom die stad getrek is. Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle 'n beter opstanding kon verkry; nog ander het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap. Hulle is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf, in skaapvelle het hulle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond. En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie, aangesien God iets beters vir ons voorsien het, sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie. Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so 'n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie. Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: “My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. Verder, ons het tog ons aardse vaders gehad, wat ons getug het, en ons het hulle gerespekteer. Sal ons ons nie baie eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en leef nie? Want hulle het ons vir 'n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter 'n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: 'n vrug van •geregtigheid. Daarom, tel op die slap hande en die lam knieë, en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond kan word. Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau nie – hy wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg prysgegee het. Julle weet immers dat, toe hy hierna die seën wou beërf, hy afgewys is, want hy kon nie 'n weg vind tot gesindheidsverandering nie – alhoewel hy dit met trane gesoek het. Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – ook nie by die klank van 'n basuin, en 'n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog 'n woord vir hulle toegevoeg word nie; want die opdrag, “Selfs as 'n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, en 'n •gemeente van •eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel. Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur. Die broederliefde moet bly! Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang. Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, aan hulle wat mishandel word asof julle dit self aan julle liggaam beleef. Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my 'n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal 'n mens aan my doen?” Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het; gee ag op die uiteinde van hulle lewensloop, en neem hulle geloof as voorbeeld. Jesus •Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike wat dié wat daarvolgens lewe, niks baat nie. Ons het 'n offeraltaar waarvan dié wat in die •tabernakel diens verrig, nie mag eet nie. Want die karkasse van die diere waarvan die bloed ter wille van die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word, word buite die laer verbrand. Daarom het ook Jesus so buite die stadspoort gely, sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig. Laat ons dus uitgaan na Hom buite die laer, en sy smaad verduur. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons is op soek na die toekomstige stad. Laat ons dan deur Hom voortdurend 'n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely. En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers. Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee – sodat hulle dit met vreugde kan doen, en nie al sugtend nie, want dit sal vir julle nie goed wees nie. Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles daarna streef om eerbaar te leef. Veral pleit ek dat julle dit sal doen, sodat ek binnekort na julle teruggebring sal word. En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! •Amen! Ek pleit by julle, broers, aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf. Julle moet weet dat ons broer Timoteus reeds vertrek het. As hy binnekort kom, sal ek julle saam met hom sien. Groet al julle leiers en al die •heiliges. Dié wat van Italië is, groet julle. Die genade bly met julle almal! Jakobus, 'n dienskneg van God en die Here Jesus •Christus, aan die twaalf stamme in die Diaspora: Gegroet! Beskou dit as 'n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie. As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen. Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n veldblom sal hy vergaan. Want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af, en sy skoonheid gaan tot niet. Net so sal die ryke verwelk in alles wat hy doen. Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. Moenie mislei word nie, my geliefde broers. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees. Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie. Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle •siele te verlos. Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. Want wie 'n hoorder van die woord is en nie 'n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in 'n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener. As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so 'n mens se godsdiens is vergeefs. Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou. My broers, julle geloof in ons Here Jesus •Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. As daar 'n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook 'n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op 'n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet. Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel. Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? As 'n broer of 'n suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood. Maar as iemand sê, “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys. Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe. Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is? Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is 'n vriend van God genoem. ” Julle sien dus dat 'n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie? Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood. Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy 'n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met 'n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. So is die tong ook 'n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek 'n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of 'n druiwestok vye nie? 'n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie. Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak. Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al 'n vriend van die wêreld wil wees, maak homself 'n vyand van God. Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy: “God staan die hoogmoediges teen, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog. Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie 'n doener van die wet nie, maar 'n regter. Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel? Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en 'n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar 'n miswolkie, wat net vir 'n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde. Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor die rampe wat julle gaan tref! Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer. Julle het in die laaste dae skatte opgegaar. Kyk, die loon wat julle weerhou het van die arbeiders wat julle lande geoes het, roep dit uit, en die geroep van diegene wat oes, het die ore van die Here, Heerser oor alle magte, bereik. Julle het op aarde weelderig en losbandig gelewe. Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag. Julle het die •regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie. Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. Kyk, ons beskou hulle wat volhard, as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is. Bo alles, my broers, moenie sweer nie – nie by die hemel nie, en nie by die aarde nie – en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” 'n “ja” wees, en julle “nee” 'n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie. As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. Elia was 'n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer. My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, moet hy weet dat wie 'n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek. •Petrus, 'n •apostel van Jesus •Christus, aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word! Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus •Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons 'n lewende hoop mag hê op 'n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word. Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele. Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is. Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”. Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie 'n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het. Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer. Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God. Julle is immers hiertoe geroep, want •Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir •geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is. Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele. Net so, vroue, moet julle aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, selfs indien sommige aan die woord ongehoorsaam is, ook hulle, sonder 'n woord, gewen kan word deur die manier waarop julle leef omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien. Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van 'n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie. Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie. Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry. Immers, “wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen. Immers, ook Christus het eens en vir altyd vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net 'n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered. Die doop, wat 'n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as 'n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as 'n smeekgebed tot God om 'n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus – Hy wat aan die regterhand van God is, nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is. Omdat •Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef. Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”. Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen. Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer 'n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van •Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; as iemand egter ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Want: “As die •regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is. Ek doen dan nou 'n ernstige beroep op die ouderlinge onder julle, ek, julle mede-ouderling en getuie van die lyding van •Christus, en julle deelgenoot in die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie. Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle. Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos 'n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. Maar al moes julle vir 'n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in •Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. Aan Hom die krag tot in ewigheid. •Amen. Ek het deur Silvanus, na my oordeel 'n getroue broer, kortliks aan julle geskryf om julle te bemoedig, en julle nadruklik te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan vas daarin! Julle mede-uitverkorene in Babilon, en Markus, my seun, groet julle. Groet mekaar met 'n soen van liefde. Vrede vir julle almal wat in •Christus is! Simeon •Petrus, 'n dienskneg en •apostel van Jesus •Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die •geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus •Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep. Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is. Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle 'n skielike ondergang vir hulleself. Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. Trouens, as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou; en as Hy die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van •geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het; en as Hy die stede van Sodom en Gomorra tot as verbrand het, toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel, en van hulle 'n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref; en as Hy die •regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het – die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig; dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word – veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop, en wat gesag verag. Hulle is roekelose, arrogante mense. Hulle skram nie daarvan weg om die hemelse wesens te belaster nie; terwyl selfs engele, wat daardie wesens tog in sterkte en krag oortref, nie teen hulle 'n klag van laster voor die Here inbring nie. Aangesien hierdie mense – soos redelose diere, instinkmatige wesens, voortgebring net om gevang en geslag te word – oor dinge laster waaroor hulle onkundig is, sal hulle deur hulle vernietigende optrede ook vernietig word, en as loon vir onreg sal húlle veronreg word. Hulle beskou dit as genotvol om helder oordag te fuif. Terwyl hulle saam met julle feesvier, is hulle skandvlekke, wat hulle verlustig in hulle losbandigheid. Hulle oë is vol owerspel, en hulle kry nie genoeg van sonde nie; hulle verlei onstandvastige siele; hulle harte is geoefen in hebsug; hulle is vervloektes! Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. Hy is egter tereggewys vir sy oortreding: 'n Donkie, wat stom is, het, deur met die stem van 'n mens te praat, 'n einde gemaak aan die profeet se waansin. Hierdie mense is opgedroogde fonteine, miswolke voortgedryf deur 'n stormwind, mense vir wie die diepste duisternis gereed staan. Want terwyl hulle aanmatigende onsin verkondig, lok hulle deur onsedelike liggaamlike drange diegene uit wat met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef – mense wat aan hulle vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee. Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin. Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die •geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing: “'n Hond keer terug na sy eie braaksel,” en “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.” Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker, sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle •apostels deurgegee het. Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag – mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig, en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook 'n aarde, wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom het. En deur hierdie dinge is die antieke wêreld deur water oorstroom, en het dit vergaan, maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses. Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Die dag van die Here sal egter kom soos 'n dief, 'n dag waarop die hemele met 'n gedruis tot 'n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word. As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat 'n heilige lewe lei en godvresend leef, wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar •geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. En beskou die lankmoedigheid van ons Here as 'n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. •Amen. Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het, en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle. Dié lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig daarvan, en verkondig aan julle die ewige lewe, wat by die Vader was, en aan ons geopenbaar is. Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle, sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus •Christus. Ons skryf hierdie dinge, sodat ons blydskap volkome kan wees. Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie; maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus •Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld. En dit is hoe ons weet dat ons Hom ken: As ons sy gebooie onderhou. Iemand wat sê, “Ek ken Hom,” maar sy gebooie nie onderhou nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod waaroor ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod, wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle gehoor het. Tog is dit 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskryf, wat in Hom en in julle 'n werklikheid is, omdat die duisternis besig is om verby te gaan, en die ware lig reeds skyn. Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis, en wandel in die duisternis, en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë blind gemaak het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle sondes vergewe is op grond van sy Naam. Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af was. Ek skryf aan julle, jong mense, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken. Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af was. Ek skryf aan julle, jong mense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly, en julle die Bose oorwin het. Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid. Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie. Maar julle is deur die Heilige gesalf, en julle almal weet dit. Ek skryf nie aan julle, omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken, en omdat daar geen leuen uit die waarheid kom nie. Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die •Christus is? Hy is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken. Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader. Wat julle betref: Wat julle van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As dit wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is die belofte wat Hy aan ons gemaak het: die ewige lewe. Hierdie dinge skryf ek aan julle aangaande daardie mense wat probeer om julle te mislei. Maar wat julle betref: die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en daarom hoef niemand julle te leer nie. Maar omdat sy salwing julle alles leer, en omdat dit die waarheid is, en nie 'n leuen nie, bly in Hom, net soos Hy julle geleer het. En nou, kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn, en nie met sy wederkoms deur Hom in die skande gestel word nie. As julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat doen wat reg is, uit Hom gebore is. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie. Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê – nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig. Moenie verbaas wees, broers, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons uit die dood oorgegaan het na die lewe, omdat ons ons broers liefhet. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie. Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit? Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid. En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom, en met 'n geruste gewete voor God kan staan: Wanneer ons gewete ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het. Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus •Christus vlees geword het, is uit God, en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is. Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle. Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom. Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê. Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie 'n swaar las nie; want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die •Seun van God is? Hy, Jesus •Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die •Seun van God glo. En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra. As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is 'n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie. Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie; maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie. Ons weet dat ons uit God is, en dat die hele wêreld in die mag van die Bose is. En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus •Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. My kinders, beskerm julleself teen die afgode. Die Oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders, wat ek in die waarheid liefhet – en nie net ek nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het – op grond van die waarheid wat in ons bly, en vir ewig met ons sal wees: Die genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en van Jesus •Christus, die Seun van die Vader, sal met ons wees – in waarheid en liefde. Ek was baie bly dat ek van jou kinders teëgekom het wat die pad van waarheid loop, in ooreenstemming met 'n gebod wat ons van die Vader ontvang het. En nou vra ek jou, vrou, nie as 'n nuwe gebod wat ek aan jou skryf nie, maar as een wat ons van die begin af gehad het, dat ons mekaar moet liefhê. En dit is die liefde: dat ons volgens sy opdragte leef. Dit is die opdrag wat julle van die begin gehoor het: dat julle daarvolgens moet leef. Want baie verleiers het in die wêreld na vore gekom – dié wat nie bely dat Jesus •Christus as mens gekom het nie. So iemand is die verleier en die Antichris. Let daarop dat julle nie verloor wat ons deur harde werk verkry het nie, maar eerder 'n volle loon ontvang. Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nie; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in julle huis ontvang nie, en hom nie groet nie. Want wie hom groet, het aandeel aan sy bose werke. Hoewel ek baie het om aan julle te skryf, wou ek dit nie met ink op papirus doen nie, maar ek hoop om na julle te kom, en van aangesig tot aangesig te praat, sodat ons blydskap volkome kan wees. Die kinders van jou uitverkore suster groet jou. Die Oudste aan die geliefde Gaius, wat ek in die waarheid liefhet. Geliefde, ek bid dat jy gesond mag wees, en dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan, soos dit met jou siel goed gaan. Want ek was baie bly toe hier broers kom, en oor jou waarheid getuig, hoe jy die pad van waarheid loop. Groter blydskap as dit het ek nie, dat ek hoor dat my kinders die pad van waarheid loop. Geliefde, jy tree getrou op in wat jy ook al vir die broers doen, en dit terwyl hulle vir jou vreemdelinge is. Hulle het voor die •gemeente van jou liefde getuig. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op 'n manier wat God waardig ag. Want ter wille van die Naam, het hulle uitgegaan, sonder om iets van die heidene te ontvang. Ons behoort sulke mense daarom goed te ontvang, sodat ons medewerkers van die waarheid kan wees. Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, gee nie aan ons erkenning nie. Daarom sal ek, wanneer ek kom, julle herinner aan die dade wat hy doen. Hy versprei slegte stories oor ons, en asof dit vir hom nie genoeg is nie, ontvang hy self die broers nie goed nie. Boonop verhinder hy ook nog diegene wat dit wil doen, en dryf hulle uit die gemeente uit. Geliefde, moenie die kwaad navolg nie, maar die goeie. Wie goed doen, is uit God; wie kwaad doen, het God nie gesien nie. Oor Demetrius is deur almal positief getuig, ook deur die waarheid self. Ook ons getuig, en jy weet dat ons getuienis waar is. Ek het baie dinge gehad om aan jou te skryf, maar wil dit nie met rietpen en ink vir jou skryf nie. Ek hoop egter om jou gou te sien, en ons sal van aangesig tot aangesig praat. Vrede vir jou! Jou vriende stuur vir jou groete. Groet die vriende by die naam. Judas, dienskneg van Jesus •Christus, en broer van Jakobus, aan die geroepenes, diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind, en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle gegee word. Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus •Christus, ontken. Ek wil julle daaraan herinner – al weet julle dit alles – dat die Here, nadat Hy een keer die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie, omgebring het, en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou, vir die oordeel van die groot dag. So ook dien Sodom en Gomorra, en die omliggende stede, wat op 'n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld, omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. En tog doen hierdie mense, op grond van hulle droomvisioene, dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag, en belaster die glansryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om 'n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf!” Hierdie mense belaster egter alles wat hulle nie ken nie, en dit wat hulle instinktief verstaan, soos redelose diere, veroorsaak hulle ondergang. Wee hulle, want hulle het die pad van Kain geloop, en hulleself vir vergoeding aan die bedrog van Bileam oorgegee, en hulle sal, soos met die verset van Korag, omkom. Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye; hulle vier skaamteloos saam met julle fees; hulle sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat nie reën bring nie, en deur winde voortgedryf word, bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan, twee maal dood, ontwortel, woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die somber duisternis vir ewig gereed gehou word. Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy heilige tienduisende, om oor almal die oordeel te vel, en om alle mense te straf vir al hulle goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” Hierdie mense, dit is hulle wat mor, foutvind, en hulle drange uitleef; hulle is grootmond, en vlei mense vir eie gewin. Maar julle, geliefdes, onthou wat die •apostels van ons Here Jesus •Christus reeds vroeër gesê het. Hulle woorde aan julle was: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef.” Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie. Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus •Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. •Amen. Hier volg 'n openbaring deur Jesus •Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het. Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het. Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby. Johannes, aan die sewe •gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus •Christus, die betroubare getuie, die •Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons 'n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. •Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! “Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige. Ek, Johannes, julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus •Christus. Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my 'n harde stem, soos dié van 'n basuin, gehoor wat sê: “Skryf wat jy sien in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was. Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in 'n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar 'n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn. Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos 'n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.” “Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Efese: “Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, en wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg, “ ‘Ek ken jou dade, jou inspanning en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Daarom het jy daardie mense wat sê dat hulle •apostels is, maar nie is nie, getoets, en hulle as leuenaars uitgewys. Verder hou jy aan om te volhard, en het jy ter wille van my Naam baie verduur, sonder om moeg te word. Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder. Maar dít tel in jou guns: Jy haat die dade van die Nikolaïete, wat Ek ook haat. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Smirna: “Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het, “ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar 'n sinagoge van Satan. Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Pergamum: “Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het, “ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. Maar Ek hou 'n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om 'n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom 'n wit klippie gee, ja, 'n klippie waarop 'n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Tiatira: “Dit sê die •Seun van God, wat oë het soos 'n vlammende vuur, en voete soos gloeiende koper, “ ‘Ek ken jou dade en liefde en geloof en diens en volharding, en weet dat jou latere dade die eerstes oortref. Maar Ek hou dit teen jou dat jy die vrou Isebel net laat begaan – sy wat haarself 'n profetes noem, en my diensknegte leer en verlei om te hoereer en om afgodsoffers te eet. Ek het haar tyd gegun om tot bekering te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar hoerery. Kyk, Ek werp haar op 'n siekbed, en ook hulle wat met haar egbreuk gepleeg het, in groot verdrukking, as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. En haar kinders sal Ek met die dood tref. Laat al die gemeentes daarvan kennis neem dat dit Ek is wat niere en harte deurgrond. Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade. Maar vir julle ander in Tiatira wat nie hierdie leer aanhang nie, en wat nie die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê nie op julle 'n ander las nie, behalwe net om vas te hou aan wat julle het, totdat Ek kom. “ ‘Aan wie oorwin, en enduit vashou aan wat Ek sê, “ ‘sal Ek mag gee oor die nasies. Hy sal hulle as 'n herder lei met 'n ysterstaf, en hulle soos kleipotte stukkend slaan. Soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek aan hom ook die môrester gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Sardis: “Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het, “ ‘Ek ken jou dade – jy staan daarvoor bekend dat jy lewe, maar jy is dood. Wees wakker, en versterk diegene wat nog oor is, wat op die punt is om dood te gaan. Ek het gevind dat jou dade in die oë van my God nie voldoende is nie. Onthou dan hoe jy die boodskap ontvang, en daarna geluister het. Bewaar dit, en bekeer jou! As jy egter nie wakker skrik nie, sal Ek soos 'n dief opdaag, en jy sal nie weet op watter tydstip Ek by jou aankom nie. Maar daar is 'n paar mense by jou in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie. Hulle sal saam met My leef, in wit klere, omdat hulle dit werd is. “ ‘Wie oorwin, sal net so wit klere kry om aan te trek, en Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie, maar voor my Vader en sy engele oor hom getuig. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. “ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou 'n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. “ ‘Wie oorwin, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Laodisea: “Dit sê die •Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, “ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. “ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” Hierna het ek gesien, en kyk, 'n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos 'n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur. ” Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was 'n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos •jaspis en •karneool, en rondom die troon was daar 'n reënboog wat net soos •smarag lyk. Rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het vier-en-twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere gedra, met goue krone op hulle koppe. Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. Voor die troon lyk dit soos 'n see van glas, net soos kristal. In die middel van die troon en rondom die troon staan daar vier lewende wesens, vol oë aan die voorkant en agterkant. Die eerste lewende wese lyk net soos 'n leeu; die tweede lewende wese net soos 'n kalf; die derde lewende wese het 'n gesig net soos 'n mens, en die vierde lewende wese lyk net soos 'n arend wat vlieg. Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. ” En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.” Ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit 'n boekrol gesien, aan die binnekant en die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël. Ek het ook 'n sterk engel gesien, wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?” Niemand – nie in die hemel, nie op die aarde, nie onder die aarde – was egter in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil, omdat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, 'n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. En Hy het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het 'n lier en 'n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die •heiliges is, vasgehou. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers. ” Toe ek weer kyk, hoor ek die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, wat met harde stemme uitroep: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.” En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” Die vier lewende wesens het ook uitgeroep: “•Amen!” En die ouderlinge het neergeval in aanbidding. Ek het gesien toe die Lam een van die sewe seëls oopbreek. En ek het een van die vier lewende wesens soos die geluid van 'n donderslag hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. Sy ruiter hou 'n boog vas, en 'n oorwinnaarskroon is aan hom gegee. Hy het opgetrek as oorwinnaar, en om te oorwin. Toe Hy die tweede seël oopbreek, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!” 'n Ander perd, 'n vuurrooie, het toe uitgegaan. Aan sy ruiter is vergun om die vrede van die aarde weg te neem, sodat mense mekaar kon doodmaak. Aan hom is ook 'n groot swaard gegee. Toe Hy die derde seël oopbreek, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd. Sy ruiter hou 'n weegskaal in sy hand. Ek het toe iets soos 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “'n Rantsoen koring kos 'n denarius, en drie rantsoene gars kos 'n denarius, en moenie dat daar skade kom met die olyfolie en die wyn nie.” Toe Hy die vierde seël oopbreek, het ek die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam is Dood, en die Hades volg hom. Aan hulle is volmag gegee om 'n kwart van die aarde dood te maak deur die swaard, hongersnood, 'n dodelike siekte, en die wilde diere van die aarde. Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het met 'n harde stem geroep: “Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek? ” Daarop is aan elkeen van hulle 'n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog 'n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het 'n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. Ook die sterre het uit die hemelruim op die aarde geval, soos wanneer 'n vyeboom sy groen navye afgooi as dit deur 'n stormwind geruk word. Die hemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en elke berg en eiland is uit sy staanplek verskuif. Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?” Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie. Ek het ook 'n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat 'n seël van die lewende God vashou. Hy het met 'n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê: “Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met 'n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie. ” Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel: Uit die stam Juda, twaalfduisend wat die seël dra; uit die stam Ruben, twaalfduisend; uit die stam Gad, twaalfduisend; uit die stam Aser, twaalfduisend; uit die stam Naftali, twaalfduisend; uit die stam Manasse, twaalfduisend; uit die stam Simeon, twaalfduisend; uit die stam Levi, twaalfduisend; uit die stam Issaskar, twaalfduisend; uit die stam Sebulon, twaalfduisend; uit die stam Josef, twaalfduisend; uit die stam Benjamin, twaalfduisend wat die seël dra. Hierna het ek gesien, en kyk, daar was 'n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. Hulle het met 'n harde stem uitgeroep: “Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!” Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid en gesê: “•Amen! Die lof, die heerlikheid en die wysheid, die dank en die eer, die krag en die sterkte kom ons God toe vir ewig en ewig. Amen!” In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?” Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: “Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God, waar hulle Hom dag en nag in sy •tempel dien. En Hy wat op die troon sit, sal sy tent by hulle opslaan. Hulle sal nie meer honger of dors word nie; nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie. Want die Lam wat in die middel voor die troon staan, sal hulle soos 'n herder versorg en hulle na fonteine met lewende water lei, en God sal elke traan uit hulle oë vee.” En toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar vir ongeveer 'n halfuur lank stilte in die hemel neergedaal. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en aan hulle is sewe trompette gegee. 'n Ander engel het nader gekom met 'n goue wierookbak, en by die altaar gaan staan. Baie reukwerk is aan hom gegee om, saam met die gebede van al die heiliges, op die goue altaar voor die troon te gaan offer. Die rook van die reukwerk het, saam met die gebede van die heiliges, uit die engel se hand voor God opgestyg. Die engel het toe die wierookbak geneem, dit met vuur van die altaar af gevul, en dit op die aarde uitgegooi. En daar was donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing. Die sewe engele met die sewe trompette het gereedgemaak om daarop te blaas. Die eerste een het op sy trompet geblaas, en daar was hael en vuur, gemeng met bloed, en dit is op die aarde uitgegooi. 'n Derde van die aarde is verskroei, 'n derde van die bome is verskroei, en al die groen gras is verbrand. Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos 'n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword; 'n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan. Die derde engel het op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval op 'n derde van die riviere en op die fonteine. Die ster se naam is Wildeals. En 'n derde van die waterbronne het soos wildeals geword, en baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit bitter geword het. Die vierde engel het op sy trompet geblaas, en 'n derde van die son, 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle verduister is. Vir 'n derde van die dag was daar nie lig nie; en net so was dit ook in die nag. En ek het gesien, en ek het 'n engel wat hoog in die lug vlieg, met 'n skril stem hoor roep: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde, wanneer die ander drie engele binnekort met 'n geskal op hulle trompette blaas.” En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. Toe het ek 'n ster uit die hemel op die aarde sien val. Aan hom is die sleutel van die skag na die onpeilbare diepte gegee. Hy het die skag na die onpeilbare diepte oopgesluit, en rook het uit die skag opgeborrel, soos rook uit 'n groot smeltoond. Die son en lug is deur die rook uit die skag verduister. Uit die rook het daar sprinkane na die aarde geswerm. Aan hulle is dieselfde krag gegee as dié van skerpioene op aarde. En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar slegs om hulle vyf maande lank te folter, deur hulle te pynig met 'n brandpyn – soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek. In daardie dae sal die mense na die dood verlang, maar dit nie vind nie; hulle sal begeer om te sterf, maar die dood sal hulle bly ontwyk. Die voorkoms van die sprinkane was net soos dié van perde wat vir oorlog gepantser is. Op hulle koppe was daar iets soos krone, wat gelyk het asof dit van goud is, en hulle gesigte was soos dié van mense. Hulle het ook hare gehad soos dié van vroue, en tande soos dié van leeus. Die sprinkane het borsplate gedra, wat soos ysterborsplate gelyk het. Die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk na 'n oorlog. Hulle het sterte met angels gehad, net soos skerpioene, en in hulle sterte was daar krag om die mense vyf maande lank te teister. Die engel van die onpeilbare diepte was hulle koning. In Hebreeus is sy naam Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste ramp is verby – kyk, hierna kom daar nog twee! Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.” Die vier engele wat gereed gestaan het met die oog op hierdie uur en hierdie dag en hierdie maand en hierdie jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mense dood te maak. Die getal soldate in die ruitery was twee maal tienduisend maal tienduisend. Ek het gehoor dat dit hulle getal was. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: hulle het vuurrooi, oranjekleurige en swaelgeel borsplate gedra. Die perde se koppe het soos dié van leeus gelyk met vuur, rook en swael wat uit hulle bekke borrel. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke borrel, is 'n derde van die mense doodgemaak. Die perde se krag het in hulle bekke en sterte gelê, want hulle sterte was net soos slange, met koppe aan, waarmee hulle skade aanrig. Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie. En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien afkom. Hy was met 'n wolk omhul, met 'n reënboog bo sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos vuurpilare. In sy hand het hy 'n klein oop boekrolletjie vasgehou. Hy het met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde gaan staan, en met 'n harde stem, soos die brul van 'n leeu, uitgeroep. Nadat hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle dreunings laat klink. Toe die sewe donderslae galm, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Verseël dit wat die sewe donderslae laat galm het, en moet dit nie opteken nie.” Die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy regterhand opgelig na die hemel, en 'n eed gesweer by Hom wat vir ewig en ewig lewe, wat die hemel en wat daarin is, en die aarde en wat daarop is, en die see en wat daarin is, geskape het: “Daar is nie meer tyd oor nie. Maar gedurende die dae wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal die misterie van God sy doel bereik, soos wat Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, verkondig het. ” Toe het ek die stem wat uit die hemel kom, weer met my hoor praat: “Gaan haal die oop boekrol in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.” Ek het toe na die engel gegaan, en hom gevra om die klein boekrolletjie vir my te gee. En hy het vir my gesê: “Neem dit, en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond so soet soos heuning wees.” En ek het die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem, en dit opgeëet. In my mond het dit so soet soos heuning gesmaak, maar nadat ek dit geëet het, was dit bitter in my maag. Toe sê hulle vir my: “Jy moet weer gaan profeteer teen baie volke, nasies, tale en konings.” Daar is toe aan my 'n meetstok gegee, wat net soos 'n staf lyk, met die opdrag: “Staan op, en gaan meet die tempel van God en die altaar, en tel die mense wat in die tempel aanbid. Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer. Hulle is die twee olyfbome, en ook die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan. As iemand hulle kwaad wil aandoen, vlam daar vuur uit hulle monde wat hulle vyande verteer; en as iemand hulle kwaad wil aandoen, moet hy ook so doodgemaak word. Hulle beskik oor die volmag om die hemel te sluit, sodat dit gedurende die tyd wat hulle profeteer, nie sal reën nie. Hulle het ook die volmag om, so dikwels as hulle wil, die water in bloed te verander, en om die aarde met elke moontlike plaag te tref. Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak. Dan sal hulle lyke langs die hoofstraat van die groot stad lê, daardie stad wat, figuurlik gesproke, Sodom en Egipte genoem word, en waar ook hulle Here gekruisig is. Drie en 'n half dae lank sal mense vanuit die volke en stamme en tale en nasies hulle lyke daar sien lê, maar nie toelaat dat hulle liggame in 'n grafkamer begrawe word nie. Die aardbewoners sal oor hulle jubel en bly wees, en vir mekaar geskenke stuur, want hierdie twee profete het die aardbewoners gefolter.” Maar ná drie en 'n half dae het die lewegewende asem van God in hulle ingegaan. En hulle het op hulle voete gekom, terwyl diegene wat hulle gesien het, deur groot vrees oorval is. Toe het hulle 'n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: “Kom op hierheen!” En hulle het in 'n wolk na die hemel opgevaar, terwyl hulle vyande hulle agternakyk. Op daardie uur het daar 'n groot aardbewing plaasgevind, en 'n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon. Die tweede ramp het verbygegaan, en kyk, die derde een kom gou. Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. In die hemel het luide stemme opgeklink wat uitroep: “Die heerskappy van ons Here en sy •Christus oor die wêreld het aangebreek, en Hy sal as koning heers, vir ewig en ewig.” Ook die vier-en-twintig ouderlinge op hulle trone voor God het op hulle gesigte voor God neergeval en Hom aanbid, met die woorde: “Ons dank U, Here God, Almagtig, U wat is en wat was, omdat U u groot mag opgeneem het, en as koning heers. Die nasies was woedend, maar u toorn het ontvlam, en die bestemde tyd het aangebreek om u oordeel oor die dooies te vel, en om u diensknegte, die profete, en die •heiliges, en hulle wat ontsag het vir u Naam, klein en groot, te beloon, en om die vernietigers van die aarde te vernietig.” Toe is God se tempel in die hemel geopen, en die •verbondsark in sy tempel het sigbaar geword. Daar was ook weerligstrale, dreunings, donderslae, 'n aardbewing en 'n groot haelstorm. Toe het daar 'n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: 'n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. Sy was swanger, en omdat sy in kraam was, het sy van geboortepyn geskree. En 'n ander teken het in die hemel verskyn: Kyk, daar was 'n groot vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone. Sy stert het 'n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind. Sy het geboorte geskenk aan 'n manlike kind, bestem om al die nasies met 'n ysterstaf te regeer. En haar kind is weggevoer na God en sy troon. Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na 'n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg. En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer, maar was nie sterk genoeg nie – daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie. Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele. Toe het ek 'n harde stem in die hemel hoor uitroep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy •Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. Daarom, juig hemel en diegene wat in die hemel woon! Wee julle, aarde en see, want die Duiwel het met groot woede na julle neergedaal, omdat hy weet dat hy min tyd oor het.” En toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou agtervolg wat geboorte geskenk het aan die manlike kind. Aan die vrou is egter die twee vlerke van die groot arend gegee, sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg, waar sy vir 'n tyd, tye en 'n halwe tyd lank weg van die slang af versorg sou word. Die slang het toe uit sy bek 'n stroom water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgespoeg, om haar deur die stroom te laat meesleur. Die aarde het die vrou egter gehelp, sy mond geopen, en die rivier wat die draak by sy bek uitgespoeg het, ingesluk. Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. Toe het hy op die strand by die see gaan staan. Toe het ek 'n dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien krone, en op sy koppe was daar 'n godslasterlike naam geskryf. Die dier wat ek gesien het, het net soos 'n luiperd gelyk, met pote soos dié van 'n beer en 'n bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Dit het gelyk of een van die dier se koppe tot die dood toe verwond was, maar sy dodelike wond het genees. Die hele wêreld was verwonderd oor die dier, en het agter hom aangeloop. En hulle het die draak aanbid, omdat hy volmag aan die dier gegee het. Hulle het toe ook die dier aanbid, en gesê: “Wie is net soos die dier, en wie kan teen hom oorlog voer?” Aan hom is 'n mond gegee om grootpraterige en godslasterlike dinge mee kwyt te raak. Aan hom is volmag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. Hy het sy mond geopen om God, en ook sy Naam en sy woonplek en hulle wat in die hemel woon, te belaster. Hy is toegelaat om teen die •heiliges oorlog te voer, en hulle te oorwin. Aan hom is ook volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie. Al die aardbewoners sal hom aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie. As iemand ore het, laat hy luister: As iemand bestem is vir gevangenskap, sal hy in gevangenskap gaan; as iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word, sal hy met 'n swaard doodgemaak word. Hiervoor het die heiliges volharding en geloof nodig. Toe het ek 'n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos 'n lam, maar hy het soos 'n draak gepraat. Hy het met al die volmag van die eerste dier opgetree, en dit in sy teenwoordigheid gedoen. En hy laat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, die een wat van sy dodelike wond genees is. Hy doen ook indrukwekkende tekens; so laat hy voor die mense vuur van die hemel af op die aarde neerkom. En hy mislei die aardbewoners deur die tekens wat hy toegelaat is om in die teenwoordigheid van die dier te doen, deur hulle te beveel om 'n beeld op te rig vir die dier wat deur die swaard gewond is, maar weer lewend geword het. Aan hom is toe die vermoë gegee om asem in die beeld van die dier te blaas, sodat die beeld van die dier ook kon praat, en om almal wat nie die beeld van die dier aanbid nie, te laat doodmaak. Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig. Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense met sy Naam, en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf. En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor, soos die gedruis van baie waters en die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, het geklink soos dié van lierspelers wat hulle liere bespeel. Hulle het 'n nuwe lied voor die troon en in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die ouderlinge gesing. Niemand kon egter dié lied leer nie, behalwe die honderd vier-en-veertigduisend mense wat van die aarde losgekoop is. Hulle is die mense wat hulle nie met vroue besoedel het nie, omdat hulle kuis is. Hulle volg die Lam, waar Hy ook al gaan. Hulle is uit die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam. En oor hulle lippe het geen enkele leuen gekom nie. Hulle is onberispelik. Toe het ek 'n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het 'n ewige evangelie ontvang, om dit te gaan verkondig aan die aardbewoners, aan elke nasie en stam en taal en volk. Met 'n harde stem het hy uitgeroep: “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het. ” Ná hom het 'n ander engel, 'n tweede een, gekom en uitgeroep: “Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink het. ” Ná hom het 'n ander engel, 'n derde een, gekom en met 'n harde stem uitgeroep: “As iemand die dier en sy beeld aanbid, en 'n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.” En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie. Hiervoor het die •heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. Ek het toe 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.” Toe het ek gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk, en op die wolk sit daar iemand net soos 'n •Seun van die Mens. Op sy kop het Hy 'n goue kroon, en in sy hand hou Hy 'n skerp sekel. 'n Ander engel het uit die tempel gekom, en met 'n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes.” Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die aarde is afgeoes. Toe het daar 'n ander engel uit die tempel in die hemel gekom. Ook hy het 'n skerp sekel vasgehou. Nog 'n engel, wat beheer oor die vuur gehad het, het van die altaar af gekom. Hy het met 'n harde stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en gesê: “Steek jou skerp sekel in, en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want die druiwe het ryp geword.” Die engel het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die wingerd op die aarde afgeoes, en dit in die groot parskuip van God se toorn gegooi. En die parskuip is buite die stad getrap. Uit die parskuip het daar bloed gevloei – sestienhonderd stadion ver, tot aan die perde se tooms. Toe het ek in die hemel 'n ander groot en wonderbaarlike teken gesien, naamlik sewe engele met die sewe laaste plae, omdat die toorn van God daarmee tot 'n einde gekom het. Ek het ook iets gesien soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en sy beeld, en die getal van sy naam het by die see van glas gestaan, terwyl hulle die siters van God vashou. Hulle sing toe die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat so lui: “Groots en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Regverdig en betroubaar is u paaie, o Koning van die nasies. Wie sal dan nie vir U ontsag hê nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en in aanbidding voor U neerval, want u regverdige dade is geopenbaar.” En hierna het ek gesien: Die tempel, die Tent met die Getuienis in die hemel, is geopen, en die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel gekom. Hulle het blink klere van suiwer linne gedra, met 'n goue band om die bors gebind. Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God, van Hom wat vir ewig en ewig leef. En die tempel is met rook gevul, vol van die heerlikheid van God en sy mag, en niemand kon by die tempel ingaan, totdat die sewe plae van die sewe engele verby was nie. Ek het toe 'n harde stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: “Gaan en gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit! ” Die eerste engel het uitgegaan, en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak oor die see uitgegooi. Dit het verander in bloed, soos van 'n dooie, en elke lewende wese in die see het doodgegaan. Die derde engel het sy bak oor die riviere en die fonteine uitgegooi, en dit het in bloed verander. Toe het ek die engel van die water hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge geoordeel het; want hulle het die bloed van •heiliges en profete vergiet, en U het hulle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” Toe het ek die engel van die altaar hoor sê: “Ja, Here God, Almagtige, u oordele is betroubaar en regverdig.” Die vierde engel het sy bak oor die son uitgegooi, en die son is toegelaat om die mense met vuur te skroei. Die mense is deur 'n versengende hitte geskroei, en hulle het gelaster teen die Naam van God, wat mag oor hierdie plae het. Nogtans het hulle hulle nie bekeer, en aan Hom heerlikheid bewys nie. Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi. Sy koninkryk is in duisternis gehul, en die mense het op hulle tonge gebyt van die pyn. Hulle het ook die God van die hemel gelaster, as gevolg van hulle pyne en hulle swere. Nogtans het hulle nie tot bekering van hulle dade gekom nie. Die sesde engel het sy bak oor die groot Eufraatrivier uitgegooi, en die rivier se water het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste gereed te maak. Toe het ek uit die bek van die draak, en uit die bek van die dier, en uit die mond van die vals profeet, drie onrein geeste sien kom wat soos paddas lyk. Hulle is demoniese geeste wat tekens doen, en wat na die konings van die hele bewoonde wêreld gaan, om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. “Kyk, Ek kom soos 'n dief! Gelukkig is die een wat wakker bly en sy klere byderhand hou, sodat hy nie naak loop, en die mense sy skaamte sien nie.” Die geeste het die konings byeengebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Toe het die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi. Uit die tempel, van die troon se kant af, het 'n harde stem uitgeroep: “Dit is afgehandel!” En weerligstrale, 'n gerammel en donderslae het gevolg, en ook 'n vernietigende aardbewing, soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing. Die groot stad het in drie dele uitmekaar geval, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het aan Babilon, die magtige, gedink deur aan haar die beker wyn van die gramskap van sy toorn te gee. En elke eiland het in die niet verdwyn, en berge was nie meer te vind nie. Groot haelstene, ongeveer 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense neergereën. En die mense het God gelaster oor die haelplaag, omdat dit 'n uitermate groot plaag was. Een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou, het toe nader gekom, en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die oordeel wys oor die groot prostituut wat by baie waters bly. ” Die konings van die aarde het met haar gehoereer, en die aardbewoners het dronk geword van die wyn van haar hoerery. Ek is deur die Gees meegevoer na 'n woestyn, en het daar 'n vrou sien sit op 'n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het. Die vrou het purperrooi en helderrooi klere gedra, en was versier met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker gehou, vol afskuwelikhede, en die onrein dinge van haar hoerery. En op haar voorkop was 'n naam geskryf, 'n misterie: “Babilon die Grote, die moeder van die prostitute, en van al die afskuwelikhede van die aarde.” Ek het ook gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die •heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus. Toe ek haar sien, was ek uitermate verbaas. Die engel sê toe aan my: “Waarom is jy so verbaas? Ek sal die misterie aan jou verduidelik van die vrou, en die dier met sy sewe koppe en tien horings wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was eers, maar is nou nie meer nie; en hy is op die punt om uit die onpeilbare diepte op te kom, op pad na sy ondergang. Die aardbewoners wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie, sal verbaas wees wanneer hulle die dier sien, want eers was dit, maar is nou nie meer nie, en sal tog weer wees. “Hiervoor is insig met wysheid nodig. “Die sewe koppe is sewe berge waarop die vrou sit. Daar is ook sewe konings. Vyf het tot 'n val gekom; daar is nou net een – die ander een het nog nie gekom nie. Wanneer hy egter opdaag, moet hy vir 'n klein rukkie bly. En die dier wat eers was, maar nie nou is nie, is self die agtste; hy kom uit die sewe voort, en is op pad na sy ondergang. Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap ontvang nie, maar hulle het vir een uur lank saam met die dier volmag, soos konings. Hulle het net een doel voor oë, en dit is om hulle krag en volmag aan die dier beskikbaar te stel. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues.” En die engel sê aan my: “Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale. Die tien horings wat jy gesien het, en ook die dier, sal die prostituut haat, en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis eet, en haar met vuur verbrand. Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde het.” Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik, en die aarde deur sy heerlikheid verlig. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep: “Geval, geval het Babilon die Grote! Sy het 'n woonplek vir demone geword, 'n skuilplek vir elke onrein gees, 'n skuilplek vir elke onrein voël, en 'n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die wellus van haar hoerery. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die handelaars van die aarde het ryk geword uit die aantrekkingskrag van haar weelde.” Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan weg van haar, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie, en julle haar plae nie oor julle bring nie. Haar sonde het opgehoop tot aan die hemel, en God het haar onregverdige dade onthou. Vergeld haar soos sy julle dit laat ontgeld het, vergeld haar dubbeld, ooreenkomstig haar dade. In die beker waarin sy vir julle gemeng het, moet julle vir haar twee keer soveel meng. In dieselfde mate as wat sy haarself verheerlik en in weelde geleef het, moet julle haar ook pyn en smart aandoen. Want in haar hart sê sy, ‘Ek sit steeds as 'n koningin; ek is nie 'n weduwee nie, en smart sal ek beslis nie ervaar nie.’ Daarom sal die plae wat vir haar bedoel is, haar op een dag tref, dood en smart en hongersnood, en sy sal met vuur verbrand word; want magtig is die Here God, wat die oordeel oor haar gevel het. ” Die konings van die aarde wat onsedelik met haar verkeer het en uitspattig geleef het, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle sal uit vrees vir haar foltering op 'n afstand staan en sê: “Wee, wee jou, groot stad, Babilon, magtige stad, binne 'n oomblik het jou oordeel aangebreek!” Ook die handelaars van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie: skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels, fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer, kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens. “En die vrug van jou hartsbegeerte is jou nou ontneem. Al die weelde en luukshede is nou vir jou verlore; dit is beslis nie meer te vinde nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik, terwyl hulle sê: “Wee, wee jou, groot stad, uitgedos in fyn linneklere, purperrooi en helderrooi, en opgesmuk met goud en edelstene en pêrels! Want binne 'n oomblik is soveel rykdom uitgewis! ” Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan. Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?” En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê: “Wee, wee jou, groot stad, deur wie se skatte almal wat skepe op see besit, ryk geword het. Want binne 'n oomblik is sy uitgewis. Juig oor haar, hemel, •heiliges, •apostels en profete! God het julle oordeel oor haar voltrek.” Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê: “Net so, met geweld, sal die groot stad Babilon neergegooi word, en sy sal nooit weer gevind word nie. En die klank van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers, sal nooit weer in jou gehoor word nie. En geen ambagsman van enige ambag sal ooit weer in jou gevind word nie. Ook die geluid van 'n meule sal nooit weer in jou gehoor word, en die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stem van 'n bruidegom en bruid sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakelui was die magtiges van die aarde, want deur jou betowering is al die nasies mislei. Maar in haar is ook die bloed van profete en heiliges gevind, en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.” Hierna het ek 'n harde klank gehoor, soos 'n groot skare, wat in die hemel jubel: “Halleluja! Die verlossing, die heerlikheid en die krag behoort aan ons God! Waar en regverdig is sy oordele, want Hy het die groot prostituut veroordeel, sy wat die aarde met haar hoerery verlei het, en Hy het die bloed van sy diensknegte wat deur haar hand omgekom het, gewreek. ” 'n Tweede keer het hulle uitgeroep: “Halleluja! Haar rook styg op, vir ewig en ewig. ” Die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval, en God wat op die troon sit, aanbid en gesê: “•Amen! Halleluja!” En 'n stem het vanaf die troon gekom wat sê: “Loof ons God, julle wat vir Hom ontsag het, al sy diensknegte – geringes en magtiges. ” En ek het iets gehoor soos die klank van 'n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep: “Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem. Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee, want die •bruilofsfees van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar gereedgemaak. En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges. ” Toe sê die engel vir my: “Skryf dit neer: ‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.’ ” Hy het ook vir my gesê: “Hierdie woorde van God is waar.” En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie. ” Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was 'n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë was soos 'n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra 'n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. Uit sy mond het 'n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap. Op sy klere, by sy heup, is 'n Naam geskryf: “Koning van die konings, en Heerser van die heersers”. En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi. Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis. Toe het ek 'n engel gesien, wat uit die hemel neerdaal, met die sleutel van die onpeilbare diepte en 'n swaar ketting in sy hand. En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir 'n duisend jaar lank. Hy het hom toe in die onpeilbare diepte gegooi, dit toegesluit, en dit bokant hom verseël, sodat hy nie meer die nasies op 'n dwaalspoor sou lei nie, totdat die duisend jaar verstryk het. Daarna moet hy vir 'n kort tydjie losgelaat word. Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met •Christus regeer, 'n duisend jaar lank. Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar verstryk het nie. Dit is die eerste opstanding. Gelukkig en heilig is die een wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees, en saam met Hom 'n duisend jaar lank regeer. Wanneer die duisend jaar verstryk het, sal Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. Dan sal hy optrek om die nasies tussen die vier uithoeke van die aarde, die Gog en Magog, op 'n dwaalspoor te lei, en om hulle te mobiliseer vir die oorlog. Hulle getal is soos die sand van die see. Hulle het van oor die breedte van die aarde opgeruk, en die laer van die •heiliges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur uit die hemel neergedaal en hulle verteer. Die Duiwel wat hulle op 'n dwaalspoor gelei het, is toe in die poel van vuur en swael gegooi waar die dier en die vals profeet ook is. En hulle sal dag en nag gefolter word, vir ewig en ewig. Toe het ek 'n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van sy aangesig af weggevlug, en daar was nie meer plek vir hulle nie. En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. 'n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel. Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel. Toe is die dood en die •Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos 'n bruid wat versier is vir haar man. Ek het toe 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.” Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut. ” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.” Daarop het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou, gekom en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” Hy het my toe deur die Gees na 'n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van 'n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder •jaspis. Die stad het ook 'n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf •apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos 'n skoon spieël. Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondament met •jaspis, die tweede met •lasuursteen, die derde met •chalcedoon, die vierde met •smarag, die vyfde met •sardoniks, die sesde met •karneool, die sewende met •chrisoliet, die agtste met •berilsteen, die negende met •topaas, die tiende met •chrisopraas, die elfde met •hiasint en die twaalfde met •ametis. En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas. 'n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp. En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring. Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie. Hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies na haar toe bring. En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam. Toe het die engel aan my 'n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies. Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van 'n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers. Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur. ” “Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol. ” Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.” “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester. ” En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg. En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.” Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou! ” •Amen! Kom, Here Jesus! Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.