In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping. God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur. God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping. God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so. God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was. God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur. Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die derde dag van die skepping. God het gesê: “Laat daar ligte in die hemelruim wees sodat mense kan weet wanneer dit dag en wanneer dit nag is. Laat die ligte die mense help om die regte tyd te bepaal. Laat die ligte aan die hemelruim ook elke dag vir die mense op die aarde lig gee.” En dit het so gebeur. God het twee groot ligte gemaak. Die ou grote, die son, moes oor die dag heers. En die kleintjie, die maan, oor die nag en die sterre. God het hierdie twee ligte toe bo in die hemelruim geplaas, sodat dit lig op die aarde bring: die grote oor die dag en die kleintjie oor die nag. So is die lig van die donkerte geskei. En God was baie tevrede met die son en die maan wat Hy gemaak het. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vierde dag van die skepping. God het gesê: “Laat die waters wemel van alle soorte seediere en laat die voëls oor die lengte en die breedte van die hemelruim rondvlieg.” God het toe die groot seediere gemaak, so ook alle diere wat in die waters leef. God het ook elke denkbare soort voël gemaak. Hy was baie tevrede met al die seediere en voëls wat Hy gemaak het. God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.” Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping. God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so. God het toe al die verskillende soorte wilde diere gemaak asook alle soorte klein- en grootvee en al die kruipende dinge op aarde. En God was baie tevrede met die diere wat Hy gemaak het. Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk. Hy sal oor die visse in die see regeer asook oor die voëls in die hemel. Hy sal die klein- en grootvee asook al die wilde diere tem. Hy sal oor al die kruipende diere op die aarde heers.” God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk. God het ’n man en ’n vrou gemaak. God het hulle toe geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en kry baie kinders, so baie dat julle oral oor die aarde sal bly. Tem die aarde en heers daaroor. Heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en al die diere op die aarde.” God het verder gesê: “Kyk, Ek gee jou elke plant wat saad dra asook elke vrugteboom op aarde as jou kos. En vir al die diere op die land, al die voëls in die lug en al die diere wat op die aarde kruip, gee Ek die groen plante. Dit sal hulle kos wees.” En dit was so. God het alles wat Hy gemaak het, goed bekyk en Hy was baie tevrede daarmee. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die sesde dag van die skepping. So het die hemel en die aarde en alles daarin ontstaan. Op die sewende dag was alles klaar. Al God se werk was afgehandel. Op die sewende dag het Hy toe gerus van al die werk wat Hy gedoen het. God het toe dié dag geseën en gesê dit moet afgesonder wees van die ander ses dae. Op die sewende dag het God nie gewerk nie, Hy het van die vorige dae se werk gerus. Dit is dan die verhaal van die hemel en die aarde en hoe dit ontstaan het. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was alles op aarde kurkdroog. Daar was nie ’n enkele plant in die grond nie en ook geen bossies in die veld nie. Alles was droog, want die Here God het nog nie reën op die aarde gestuur nie en daar was ook nog geen mens om die aarde te bewerk nie. ’n Mistigheid het later vanuit die dieptes van die aarde opgekom en die grond natgemaak. Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef. Die Here God het toe ’n tuin in Eden, in die ooste, geplant en die mens daar laat bly. Die Here God het verskillende bome uit die vrugbare tuin se grond laat opkom; pragtige bome met heerlike vrugte wat lekker is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van die lewe gestaan asook die boom van kennis van goed en kwaad. ’n Groot rivier het binne-in Eden ontstaan en die hele tuin natgemaak. Daarvandaan het dit in vier takke verdeel. Die naam van die een tak was die Pison. Dit het deur die land van Hawila gekronkel. In Hawila was daar suiwer goud, balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon genoem. Dit het deur die land Kus geloop. Die Tigris was die derde rivier. Dit is die een wat oos van Assur verbyloop. En die vierde rivier was die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas. Hy het ook vir die mens gesê: “Jy is welkom om van al die bome in die tuin te eet. Daar is egter een boom waarvan jy nooit mag eet nie. Dit is die boom wat kennis gee van goed en kwaad. Die oomblik dat jy daarvan eet, word jou bestemming die dood.” Die Here God het verder gesê: “Dit is nie reg dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan bystaan en hom kan help.” Die Here God het elke soort dier uit die grond gemaak asook al die voëls van die hemel. Hy het hulle na die mens toe gebring sodat hy vir hulle name kon gee. Watter naam hy ook al gegee het, so is daardie dier en voël genoem. Die man het toe name aan al die mak diere, al die voëls en al die wilde diere gegee. Nie een was egter goed genoeg om hom te help nie. Die Here God het die mens toe diep laat slaap. Terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbes gevat en die oop stuk met vleis toegemaak. Uit die rib van die mens het die Here God ’n vrou gevorm. Hy het haar na hom toe gebring. Die mens het oorstelp van vreugde gesê: “Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk, iemand met ’n liggaam net soos myne. Ek gaan haar ‘vrou’ noem, want sy is deel van my.” Dit is waarom ’n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly. Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees. Hulle twee, die man en die vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie. Van al die wilde diere wat die Here God gemaak het, was die slang die skelmste en agterbaksste. Op ’n dag probeer hy die vrou uitoorlê deur vir haar te sê: “Ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe?” “Nee,” het die vrou die slang vinnig in die rede geval, “ons mag van al die bome in die tuin eet. Dit is net van daardie boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. God het uitdruklik gesê: ‘Moenie daarvan eet nie. Moenie eers daaraan raak nie. As dit gebeur, sal julle doodgaan.’” Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.” Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet. Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere. Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?” Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.” Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het jou vertel dat jy kaal is? Of het jy van die verbode boom se vrugte geëet?” Die mens sê toe: “Dit is alles die vrou se skuld. Die einste vrou wat U my gegee het, het my van die boom se vrugte gegee. En ek het dit geëet.” Die Here God vra toe vir die vrou: “Hoekom het jy dit gedoen?” Sy het geantwoord: “Dit is die slang se skuld. Hy het my om die bos gelei, toe het ek van die vrugte geëet.” Die Here God sê toe vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek. Van al die wilde diere, ja, van almal in die dierewêreld sal dit met jou die heel slegste gaan. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet jou hele lewe lank. “Ek maak jou en hierdie vrou bitter vyande van mekaar. Jou nageslag en haar nageslag sal mekaar haat. Hulle sal altyd probeer om jou kop plat te trap. En jy sal hulle aan die hakskeen wil byt.” Vir die vrou het Hy gesê: “Wanneer jou kinders gebore word, sal jou pyn ondraaglik wees. Elke kind sal in die allergrootste pyn gebore word. Jy sal ook altyd na jou man bly verlang, hy sal jou oorheers.” Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk. “En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet. Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.” Die man het sy vrou Eva genoem, want uit haar is al die latere geslagte mense gebore. Die Here God het toe vir Adam en Eva klere van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek. Toe het God gesê: “Die mens het amper soos Ons geword. Hy weet nou wat die verskil tussen goed en kwaad is. Nou moet hy net nie ook nog die vrugte van die boom van die lewe eet nie, want dan leef hy vir altyd.” Daarom het God hom uit die tuin van Eden weggejaag. Hulle moes elders die grond gaan bewerk, dieselfde grond waaruit hulle gemaak is. Nadat hulle uit die tuin weg is, het die Here God engele met vlammende swaarde aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas. Hulle moes die boom oppas wat vir altyd lewe gee. Adam het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het ’n kind verwag. Haar eerste kind was ’n seun en sy het hom Kain genoem. Sy het trots gesê: “Met die Here se hulp het ek ’n man in die lewe gebring.” Haar tweede kind was ook ’n seun en sy het hom Abel genoem. Abel was ’n herder wat skape aangehou het. Kain was ’n boer wat die aarde bewerk het. Op ’n dag het Kain ’n offer vir die Here gebring. Hy het van die produkte van die land geneem en dit vir die Here geoffer. Abel het dieselfde gedoen. Hy het van die lammers gevat en hulle vet vir die Here geoffer. Die Here het baie van Abel se offer gehou. Maar Hy het nie Kain en sy offer aanvaar nie. Kain was woedend hieroor. Hy het moedeloos geraak. Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk? As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.” Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is jou broer Abel?” Kain het vererg geantwoord: “Hoe moet ek nou weet? Is ek dan my broer se oppasser? Moet ek hom dag en nag oppas?” En die Here het gesê: “Wat het jy in hemelsnaam aangevang? Luister net ’n bietjie hoe skreeu jou broer se bloed. Dit roep van die bloedbevlekte aarde af na My. Jy word nou summier van die grond verban. Jy sal nooit weer van die grond kan leef nie, want jy het die grond gedwing om jou broer se bloed te drink; die bloed van jou broer wat jy doodgemaak het. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie. Jy sal vir altyd ’n eensame swerwer op aarde wees.” Kain het toe gesê: “My straf is te swaar. Ek kan dit hoegenaamd nie alleen dra nie. U het my vandag van die grond af verban. Ek moet wegkruip voor U. Dag vir dag sal ek rusteloos op die aarde moet rondswerf. En enigeen wat my raakloop, sal my ook wil doodmaak.” “Nee,” het die Here gesê, “dit sal nie gebeur nie. Enigeen wat vir Kain doodmaak, sal self ’n wrede dood sterf.” Die Here het toe ’n merk op Kain se voorkop gemaak. Dit moes mense afskrik om hom dood te maak. Kain het toe weggegaan, weg van sy grond en die teenwoordigheid van die Here af. Hy het gaan bly in die land Nod, duskant die tuin van Eden. Kain se vrou het verwag en hulle seun Henog is gebore. Kain het intussen ’n groot stad gebou. Hy het dit na sy seun Henog vernoem. Henog se oudste seun was Irad. Irad se seun was Mehujael. Mehujael het ’n seun met die naam Metusael gehad. Metusael was die pa van Lameg. Lameg het twee vroue gehad. Een se naam was Ada en die ander een was Silla. Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorouer van die nomades, wat met hulle vee rondtrek en in tente bly. Sy broer se naam was Jubal, en hy was die voorouer van al die musikante. Tubal-Kain was Silla se seun. Hy was die voorouer van die vakmanne wat die allermooiste dinge van koper en yster gemaak het. Tubal-Kain se suster was Naäma. Op ’n dag het Lameg vir sy twee vroue gesê: “Ada en Silla, luister baie mooi en spits julle ore: ek, Lameg, ek duld niks van niemand nie. Ek sal ’n man doodmaak wat my wil wond en ’n seun wat my wil beseer. Kain is sewe keer gewreek, maar ek, Lameg, sal 77 keer gewreek word.” Adam en Eva het weer ’n kind gehad en hulle het hom Set genoem. Eva het gesê: “Die Here het my ’n ander kind gegee in die plek van Abel wat deur sy broer Kain vermoor is.” Set het ook ’n seun gehad en hom Enos genoem. In die tyd van Enos het die mense die Here begin aanbid. Hier is ’n lys van Adam se afstammelinge: Toe God die mense gemaak het, het Hy hulle op so ’n manier gemaak dat hulle na Hom gelyk het. Hy het hulle as ’n man en ’n vrou gemaak, hulle geseën en hulle “mens” genoem die dag toe Hy hulle gemaak het. Toe Adam 130 jaar oud was, het hy pa geword van ’n seun wat net soos hy gelyk het. Adam het hom Set genoem. Na Set se geboorte het Adam nog 800 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Adam was dus 930 jaar oud toe hy dood is. Toe Set 105 was, is sy seun Enos gebore. Set het na Enos se geboorte nog 807 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Set was dus 912 jaar oud toe hy dood is. Toe Enos 90 was, is sy seun Kenan gebore. Enos het na Kenan se geboorte nog 815 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Enos was dus 905 jaar oud toe hy dood is. Toe Kenan 70 was, is sy seun Mahalalel gebore. Kenan het na Mahalalel se geboorte nog 840 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Kenan was dus 910 jaar oud toe hy gesterf het. Toe Mahalalel 65 was, is sy seun Jered gebore. Mahalalel het na Jered se geboorte nog 830 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Mahalalel was dus 895 jaar oud toe hy dood is. Toe Jered 162 was, is sy seun Henog gebore. Jered het na Henog se geboorte nog 800 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Jered was dus 962 jaar toe hy oorlede is. Toe Henog 65 was, is sy seun Metusalag gebore. Henog het sy hele lewe lank baie naby aan God geleef. Na die geboorte van Metusalag het hy nog 300 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Henog se ouderdom was dus 365 jaar. Henog het baie naby aan God geleef, so naby dat hy op ’n dag net nie meer daar was nie. Hy was weg, want God het hom kom haal. Toe Metusalag 187 was, is sy seun Lameg gebore. Metusalag het na die geboorte van Lameg nog 782 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het. Toe Lameg 182 was, is sy seun gebore. Hy het die seun Noag genoem en gesê: “Hy gaan ons nog moed inpraat as ons sukkel en moeg gewerk is. Hy gaan ons nog troos as ons so swaarkry op die aarde wat die Here vervloek het.” Lameg het na die geboorte van Noag nog 595 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Lameg was dus 777 jaar oud toe hy dood is. Noag was 500 jaar oud toe sy seuns, Sem, Gam en Jafet, gebore is. Toe die mense op die aarde meer en meer geword het, het hulle ook mooi dogters gekry. Sommige van die wesens in die hemel het hierdie dogters se skoonheid raakgesien en met hulle kom trou. Hulle het vir hulle as vroue gevat wie hulle wou. Toe sê die Here: “My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie. Hy is tog maar net ’n sterflike wese. Hy sal nie langer as 120 jaar leef nie.” In hierdie tyd was daar ook reuse op aarde. Hulle was die kinders van die hemelwesens en die vroue van die aarde. Hierdie reuse was die heldefigure van die oertyd; bekende mans waaroor die mense stories vertel het. Die Here het gesien dat die mens sleg was. Alles waaraan hy gedink het of beplan het, was deurtrek van boosheid. Toe het die Here spyt gekry dat Hy die mens gemaak het. Sy hart was seer. Op ’n dag het Hy toe gesê: “Ek gaan alles op aarde verwoes; die mense wat Ek gemaak het asook die diere: al die wilde diere, alles wat kruip en alles wat in die hemel rondvlieg. Ek is bitter jammer dat Ek ooit mense en diere gemaak het.” Een mens het egter alles vrygespring: dit was Noag. Die Here was lief vir hom. Van Noag kan ’n mens net mooi dinge sê. Hy was ’n goeie man. Hy het die regte dinge gedoen en naby aan die Here geleef. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. In die oë van God was die aarde vol boosheid. Oral was daar korrupsie en wetteloosheid. God het geweet wat op die aarde aangaan. Hy het gesien hoe mens en dier dag vir dag net slegter word. God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig. “Bou nou vir jou ’n boot van goferhout. Maak aan die binnekant sommer ’n klomp kamers. Sorg dat jy alles waterdig maak. Smeer dit binne en buite goed met pik. So moet jy dit bou: die lengte van die ark moet 135 meter wees, sy breedte 22,5 meter en sy hoogte 13,5 meter. Maak ook vir die ark ’n dak met ’n spitsnok van 45 sentimeter. Sit ’n deur aan die kant van die ark in. En verdeel die ark in ’n onderste, ’n middelste en ’n boonste verdieping. “Ek gaan ’n groot vloed oor die aarde loslaat. Die water gaan alles vernietig. Alle mense en diere, ja, alles wat lewe, sal doodgaan. Niemand sal hierdie ramp oorleef nie. Maar met jou sal Ek ’n ooreenkoms maak. As die water kom, moet jy en jou familie in die ark ingaan, maar julle moet ’n klomp diere saamneem. Van alles wat leef, moet jy twee-twee saam met jou die ark invat. Sorg dat dit ’n mannetjie en ’n wyfie is. Van alle soorte voëls, van alle soorte vee en van alles wat op die aarde kruip, moet jy twee vat. Hulle moet saam met jou in die ark bly. “Jy moet ook vir genoeg kos sorg. Jy moet genoeg saamvat en in die ark wegpak sodat julle en die diere altyd kos sal hê om te eet.” Noag het dit toe gedoen, net soos God vir hom gesê het. Toe alles klaar was, het die Here vir Noag gesê: “Klim in die ark in en vat jou gesin saam. Van almal op aarde het jy die naaste aan My geleef. Vat ook van elke rein dier sewe pare saam met jou in die ark in, ’n mannetjie en ’n wyfie. Van al die onrein diere hoef jy net een paar elk, ’n mannetjie en ’n wyfie, saam te vat. Van al die voëls wat in die lug rondvlieg, moet jy ook sewe pare saamvat, ’n mannetjie en ’n wyfie. So kan al die voëlsoorte voortbestaan. Binne sewe dae stuur Ek reën. Dit sal 40 dae en 40 nagte aanmekaar reën. So sal Ek alles wat Ek gemaak het, van die aarde af vernietig.” Noag het presies gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was 600 jaar oud toe die massas water die aarde begin oorstroom het. Toe die water begin opstoot, het Noag saam met sy vrou, sy seuns en hulle vroue in die ark geklim. Die mannetjies en wyfies van alle rein en onrein diere, van elke soort voël en van alle kruipende diere is saam met Noag in die ark in. Hulle het twee-twee die ark ingestap, net soos die Here vir hom gesê het. Sewe dae later het die water van die vloed oor die aarde gespoel. In Noag se 600ste jaar, in die tweede maand, presies op die sewentiende dag van daardie maand, het alles begin. Al die fonteine onder die aarde het oopgebars, die hemele se sluise het oopgebreek en die watermassas het neergestort. Dit het 40 dae en nagte so aangehou. Geweldige swaar reën het die aarde dag en nag geteister. Daardie selfde dag het Noag en sy vrou asook hulle seuns, Sem, Gam en Jafet, en hulle vroue in die boot ingegaan. Saam met hulle was daar van elke spesie wilde diere en vee; elke soort dier wat op die aarde rondkruip, elke soort voël, ja, alles wat vlerke het. Een paar van alles wat leef, het saam met Noag in die ark geklim. Dit was die mannetjies en wyfies van alle denkbare soorte diere wat in die ark was, presies net soos die Here vir Noag gesê het. Toe almal binne was, het die Here gekom en self die ark se deur agter hulle toegesluit. Massas water het op die aarde neergestort, 40 dae aanmekaar. Soos die water meer en meer geword het, het dit die ark stadig maar seker begin oplig totdat dit naderhand gedryf het. Die watervlak het elke dag gestyg. Die ark het op die water begin vaar. Naderhand was daar soveel water op die aarde dat die hoogste bergspitse oorstroom was. Die water het meer as sewe meter bokant die hoogste pieke gevloei. Alles op aarde is uitgewis: voëls, vee en wilde diere, asook alle kruipende diere, ook al die mense. Alles wat op die aarde asemgehaal het, is uitgewis. Alles en almal is deur die water van die aarde af weggevee. Net Noag het oorgebly saam met dié wat by hom in die ark was. Vir 150 dae lank het die watermassa oor die hele aarde gespoel. God het aan Noag en sy mense in die ark gedink, ook aan al die diere saam met hom. God het toe ’n sterk wind oor die watermassa gestuur en die watervlak het stadig maar seker begin sak. Al die onderaardse fonteine het opgehou om te vloei. Al die donker reënwolke het verdwyn en dit het ophou reën. Bietjie vir bietjie het die water toe begin wegsak. Na 150 dae het die watervlak al soveel gesak dat die ark by die berg Ararat gaan staan het. Dit het op die sewentiende dag van die sewende maand gebeur. Tot die tiende maand het die watervlak bly daal sodat ’n mens al die bergpieke in die verte kon sien. Nog 40 dae later het Noag die ark se luik oopgemaak en ’n kraai laat uitvlieg. Dit het heen en weer oor die water gevlieg totdat die water uiteindelik opgedroog het. Noag wou weet of die aarde al droog was; daarom het hy ’n rukkie later ’n duif uitgestuur. Die duif kon nêrens gaan sit nie omdat daar oral water was en het na die ark toe teruggevlieg. Noag het sy hand uitgesteek en die duif het daarop gaan sit. Hy het die duif in die ark gebring. ’n Week later het hy weer die ark se luik oopgemaak en die duif uitgestuur. Teen die aand se kant het die duif teruggekom met ’n vars geplukte olyfblaartjie in sy bek. Toe het Noag geweet die water het in die grond weggesak. Hy het egter nog ’n week gewag en toe weer die duif uitgestuur. Dit het nie weer teruggekom nie. In Noag se 601ste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die water al so weggesak dat ’n mens die droë grond kon sien. Noag het die ark se deur oopgemaak en gesien die aarde is droog. Dit was die 27ste dag van die tweede maand. God het toe vir Noag gesê: “Kom maar uit die ark uit, jy en jou vrou, jou seuns en hulle vroue. Bring ook al die diere saam met jou uit, alles wat lewe, die voëls en vee en kruipende diere. Laat hulle uitkom en op die aarde rondbeweeg sodat hulle vrugbaar kan word en kan vermeerder.” Noag en sy mense het toe uitgestap. Agter hulle het die diere volgens hulle spesies uitgekom. Noag het toe ’n altaar vir die Here gebou en hy het van die rein diere en voëls as brandoffer vir die Here geslag. Toe die Here die heerlike geur ruik, het Hy gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek oor die mens nie, want die mens is sleg van kleins af. Ek sal nooit weer so iets verskrikliks doen nie. Nooit weer sal Ek mens en dier so totaal uitwis nie. “So lank as wat die aarde bestaan, sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou bestaan nie.” God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Word baie en maak die aarde van voor af vol mense. Alle diere op aarde en voëls in die lug asook alles wat op die aarde kruip, sal vir julle bang wees. Selfs die visse in die see sal julle vrees. Ek gee al hierdie diere in julle mag. Julle kan met hulle doen wat julle wil. Julle kan alles eet wat leef, ook alle groenigheid in die veld. Julle mag net nie bloederige rou vleis eet nie, want in die bloed lê die lewe. Net so is julle lewe ook vir My belangrik. Wie julle bloed laat vloei, sal moet rekenskap gee, of dit nou ’n dier of ’n mens is. As ’n mens iemand doodmaak, sal Ek van hom rekenskap eis. “Wie iemand doodmaak, sal doodgemaak word. God het die mens so gemaak dat hy na God lyk. Daarom mag mense mekaar nie doodmaak nie. “Wees vrugbaar en vermeerder. Maak die aarde vol mense en onderwerp dit.” God het toe vir Noag en sy seuns gesê: “Ek maak ’n ooreenkoms met julle en julle kinders en met al die diere wat saam met jou in die ark was: die voëls, die vee en elke wilde dier, met al die diere wat saam met jou by die ark uitgestap het en op aarde leef. Nooit weer sal ’n watervloed alle mense en diere doodmaak nie. Nooit weer sal ’n vloed die hele aarde heeltemal verwoes nie. Ek sal my ooreenkoms met julle hou.” God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms. Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde. Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien, sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie. Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.” God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.” Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, het saam met hom uit die ark gekom. Gam was die voorvader van al die Kanaäniete. Uit hierdie drie seuns van Noag het al die mense op aarde ontstaan. Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het. Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê. Toe Gam, die voorvader van al die Kanaäniete, sien dat sy pa kaal in die tent lê, het hy sy twee broers daarvan vertel. Sem en Jafet wou nie hulle pa kaal sien nie en het toe klere gevat, dit oor hulle skouers gegooi en die tent agteruit binnegestap. Terwyl hulle anderpad kyk, het hulle die klere oor hulle pa gegooi. Toe Noag weer nugter was, het hy gehoor wat sy jongste kind aan hom gedoen het. Hy het toe vir hom gesê: “Gam, oor jou sal dit met die Kanaäniete sleg gaan. Hulle sal nog eendag vir jou broers werk.” Van Sem het hy gesê: “Loof die Here, die God van Sem. Kanaän sal nog Sem se vuilwerk doen.” Van Jafet het Noag gesê: “Mag Jafet se nageslag groot wees. Mag sy kinders saam met Sem se nageslag woon. Kanaän sal ook nog aan Jafet onderhorig wees.” Na die vloed het Noag nog 350 jaar geleef. Noag het gesterf toe hy 950 jaar oud was. Hier is die nageslag van Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet; almal wat ná die watervloed gebore is. Jafet se kinders was Gomer, Magog, die Mediërs, die Grieke, Tubal, Mesek en Tiras. Die nageslag van Gomer was Askenas, Rifat en Togarma. Die nageslag van Jawan was Elisa, Tarsis, die Kittiërs en die Rodaners. Uit hierdie nageslag van Jafet het al die seevolke ontstaan; elke volk met sy eie taal en kultuur asook sy eie mense. Gam se kinders was Kus, Egipte, Put en Kanaän. Kus was die pa van Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Rama se kinders was Skeba en Dedan. Kus was ook die pa van Nimrod, die eerste groot heerser op aarde. Die Here het hom as ’n uitstekende jagter beskou. Vandag nog praat die mense van ’n goeie jagter as iemand soos Nimrod wat deur die Here as ’n uitstekende jagter gesien is. Nimrod se magtige koninkryk het uit Babel, Erek, Akkad en Kalne bestaan, almal in Sinar geleë. Uit hierdie volke het die Assiriese Ryk gegroei. Nimrod het ook Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou asook Resen tussen Nineve en Kalag. Kalag was ’n groot stad. Uit Egipte het die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs en die Naftoagiete ontstaan. Dan was daar ook nog die Patrosane en Kaslugiete asook die Kaftorane, uit wie die Filistyne ontstaan het. Kanaän was die pa van Sidon, sy oudste seun, asook Het, die Jebusiete, Amoriete, Girgasiete, Hewiete, Erekiete, Siniete, Arwadters, Semariërs en die mense van Hamat. Later het die Kanaänitiese stamme in verskillende rigtings uitgebrei totdat die Kanaänitiese grense gestrek het van Sidon af tot by Gasa in die rigting van Gerar en tot by Lesa in die rigting van Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim. Hierdie is die nageslag van Gam, ingedeel volgens hulle stamme en volksgroepe, hulle tale en kulture en hulle landstreke. Sem het ook ’n hele klomp kinders gehad. Hy was die voorvader van al die Hebreërs. Sy oudste broer was Jafet. Sem se nageslag was: Elam, Assirië, Arpaksad, Lud en Aram. Die nageslag van Aram was Us, Gul, Geter en Mas. Uit Arpaksad is Selag gebore en uit Selag, Heber. Vir Heber is twee seuns gebore. Die naam van die een was Peleg, want in sy tyd het die mense oor die hele aarde verdeel geraak. Sy broer se naam was Joktan. Uit Joktan is gebore Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag, Hadoram, Usal, Dikla, Obal, Abimael, Skeba, Ofir, Gawila en Jobab. Hulle almal is Joktan se seuns. Hulle nedersettings was van Mesa af tot by Sefar in die oostelike bergwêreld. Hierdie is dan Sem se nageslag, ingedeel volgens hulle stamme en volksgroepe, hulle tale en kulture asook hulle landstreke. Hierdie is al die stamme uit Noag se drie seuns. Hulle is ingedeel volgens die lande waarin hulle gewoon het. Uit hulle het al die nasies van die wêreld ná die oorstroming ontstaan. Die hele wêreld het dieselfde taal gepraat. Baie mense het ooswaarts begin trek en by ’n groot vallei in die land Sinear gekom. Hulle het besluit om daar te bly. Op ’n dag sê hulle toe vir mekaar: “Kom ons maak stene en bak dit kliphard.” In plaas van groot steenklippe het hulle toe kleistene gemaak en in plaas van sement het hulle asfalt gebruik. Toe sê hulle vir mekaar: “Kom ons bou vir onsself ’n stad met so ’n hoë toring dat die puntjie aan die hemel raak. Ons sal dan beroemd word en ook sterk wees. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat met ons. Ons sal magteloos oor die hele wêreld rondswerf.” Hulle het toe begin bou. Die Here moes egter afkom om die mense se stad en toring te kon sien. En die Here het gesê: “Wat doen die mense tog? Hulle dink as hulle een volk met een taal is, sal alles vir hulle moontlik wees en sal hulle alles kan doen. Ek gaan nou tot onder toe afdaal en hulle taal verwar. Hulle sal met mekaar praat, maar mekaar hoegenaamd nie verstaan nie.” So het die Here hulle oor die hele wêreld verstrooi. Die mense het ook opgehou om verder aan die stad met die hoë toring te bou. Dis hoekom hulle daardie plek Babel genoem het, want dit is waar die Here die mense verskillende tale laat praat het en hulle oor die hele aarde versprei het. Hier is die nageslag van Sem. Toe Sem 100 was, is sy seun Arpaksad gebore, twee jaar ná die oorstroming. Na Arpaksad se geboorte het Sem nog 500 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. Toe Arpaksad 35 was, is Selag gebore. Na Selag se geboorte het Arpaksad nog 403 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. Toe Selag 30 was, is Heber gebore. Na Heber se geboorte het Selag nog 403 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. Toe Heber 34 was, is Peleg gebore. Na Peleg se geboorte het Heber nog 430 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. Toe Peleg 30 was, is Reü gebore. Na Reü se geboorte het Peleg nog 209 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. Toe Reü 32 was, is Serug gebore. Na Serug se geboorte het Reü nog 207 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. Toe Serug 30 was, is Nahor gebore. Na Nahor se geboorte het Serug nog 200 jaar geleef en nog seuns en dogters gehad. Toe Nahor 29 was, is Tera gebore. Na Tera se geboorte het Nahor nog 119 jaar geleef en ander seuns en dogters gehad. Toe Tera 70 was, is sy seuns Abram, Nahor en Haran gebore. So lyk Tera se afstammelinge. Tera het drie seuns, Abram, Nahor en Haran, gehad. Haran het ’n seun met die naam Lot gehad. Aanvanklik het die familie in Ur van die Galdeërs gewoon. Daar het Haran gesterf. Hy is vroeg dood terwyl sy pa nog geleef het. Abram is getroud en later is Nahor ook getroud: Abram met Sarai en Nahor met Milka. Milka was ’n dogter van Haran, wat ook nog ’n ander dogter gehad het met die naam Jiska. Abram en Sarai het nie kinders gehad nie, want Sarai was onvrugbaar. Op ’n dag het Tera besluit om te trek. Hy het sy oudste seun, Abram, sy skoondogter, Sarai, sy kleinkind, Lot, en die res van die familie gevat en getrek. Hulle is sak en pak uit Ur van die Galdeërs weg en het in die rigting van Kanaän getrek. Op pad het hulle in Haran gekom en besluit om daar te bly. Tera was 205 jaar oud toe hy die dag in Haran gesterf het. Op ’n dag het die Here vir Abram gesê: “Jy moet weggaan, weg van die plek waar jy gebore is, weg van jou pa se huis af. Ek sal jou ’n ander land gee waar jy kan gaan bly. Ek sal jou en jou nageslag ’n groot nasie maak. Ek sal jou ryk en voorspoedig maak. Oral sal mense jou naam ken en van jou praat. Oor jou sal dit met hulle ook goed gaan. “Wie vir jou goed is, sal Ek gelukkig maak. Wie jou sleg behandel, sal teëspoed ervaar. Oor jou sal dit met alle mense op aarde goed gaan.” Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het. Abram het sy vrou, Sarai, sy broerskind, Lot, en al die besittings wat hulle oor die jare opgegaar het, saamgevat. Al die mense wat vir Abram-hulle in Haran gewerk het, het ook saamgetrek. Hulle het in die rigting van Kanaän begin trek en na ’n lang tyd daar aangekom. Abram het deur die land getrek en by Sigem gekom. Hy het digby die groot boom van More kamp opgeslaan. In daardie stadium het die Kanaäniete in die land gebly. Die Here het aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Abram, hierdie land sal Ek nog vir jou en jou nageslag gee.” Abram was bly en het vir die Here wat aan hom verskyn het ’n altaar gebou. Van daar af is hy bergwêreld toe en het net oos van Bet-El kamp opgeslaan. Waar sy tent gestaan het, was Bet-El aan sy westekant en Ai aan die oostekant. Hy het weer ’n altaar vir die Here gebou en daar gebid. Daarna het Abram stuk vir stuk deur die hele suidelike woestyn getrek. Na ’n ruk het daar hongersnood uitgebreek. Toe daar nie meer kos was nie, het Abram Egipte toe getrek. Hy kon nie anders nie, want daar was niks meer om te eet nie. Naby Egipte se grens het Abram bang geword en vir sy vrou, Sarai, gesê: “Jy is ’n baie mooi vrou. Almal kan dit sien. En dit is waarom ek vir die Egiptenaars bang is. As hulle jou sien, sal hulle jou wil hê. En as hulle agterkom ons is getroud, sal hulle my doodmaak, maar jou laat leef. As die Egiptenaars jou uitvra, sê dan jy is my suster. Hulle sal dan vir my goed wees oor jou en my laat leef en vir jou ook. Net jy kan nog my lewe red.” Abram-hulle het Egipte skaars binnegetrek of die mense sien hoe mooi Sarai is. Sommige belangrike amptenare het haar ook raakgesien en vir die koning van haar vertel. Sarai is toe terstond gehaal en na die koning se huis geneem. Met Abram het dit ook baie goed gegaan oor haar. Hy het vee, beeste en donkies, slawe en kamele gekry oor sy vrou Sarai. Die Here het egter ingegryp. Hy wou Abram en Sarai red, en het toe groot ellendes oor die koning en sy huis laat kom. Toe het die koning Abram laat kom. “Wat het julle aan my gedoen?” het hy gesê. “Waarom het jy nie gesê dit is jou vrou nie? Jy het gesê dit is jou suster en daarom wou ek met haar trou. Hier is jou vrou. Vat haar en gee pad.” Die koning het soldate saamgestuur om seker te maak dat Abram, sy vrou en al sy besittings die land verlaat. Van Egipte af het Abram na die suidelike woestyn getrek. Saam met hom was sy vrou asook Lot en almal wat vir hom gewerk het. Abram was baie ryk. Hy het ’n groot klomp vee, silwer en goud gehad. Hy het rus-rus deur die suidelike woestyn getrek, tot by Bet-El. Hy het weer by die plek tussen Bet-El en Ai gekom waar sy tent vroeër gestaan het. Dis dieselfde plek waar hy destyds vir die eerste keer ’n altaar vir die Here gebou het. Daar het hy na die Here geroep in gebed. Lot, Abram se broerskind wat heeltyd nog saam getrek het, het ook ’n klomp vee en mense gehad wat vir hom werk. Naderhand kon hulle nie meer saamleef nie. Die vee was te veel en die land te klein. Abram en Lot se werksmense het ook baie met mekaar begin baklei. In dié tyd het die Kanaäniete en die Feresiete in die land gebly. Abram het toe vir Lot gesê: “Laat daar tog nie spanning tussen ons twee wees nie, en ook nie tussen ons werksmense nie. Ons is tog immers familie. Dalk is dit maar beter dat ons paaie skei. Kies waarheen jy wil gaan. As jy die een deel kies, neem ek die ander. Trek jy na die een deel van die land toe, gaan ek elders. So, jy kan kies.” Lot het toe rondgekyk. Die Jordaanvallei met sy baie water was vir hom baie mooi. Dit was natuurlik voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. Dit was so mooi soos die tuin van die Here, of soos die dele naby Soar in Egipte. Lot het toe die hele Jordaanvallei vir homself gekies. Hy het toe sy oom, Abram, gegroet en ooswaarts getrek. So het Abram en Lot se paaie geskei. Abram het alleen in die land Kanaän agtergebly terwyl Lot in die Jordaanvallei se groot stede gaan woon het. Na ’n ruk het hy in die buitewyke van die stad Sodom gaan bly. Sodom se inwoners was egter baie slegte mense. Hulle het nie na die Here geluister nie en baie verkeerde dinge gedoen. Na Lot van hom weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk net ’n bietjie om jou,” het Hy gesê. “Kyk stip in die rigting van die noorde en die suide, die ooste en die weste. En wat jy ook al rondom jou sien, sal Ek eendag aan jou en jou nageslag gee. Ek maak jou nageslag so baie soos die stof van die aarde. As iemand die stof kan tel, sal hulle ook jou nageslag kan tel. Gaan loop net ’n bietjie deur die hele land en weet: waar jy ook al kom, Ek sal dit eendag vir jou gee.” Abram het toe sy tent en al sy ander goed gepak en begin trek. Sy eerste kampplek was by die bome van Mamre duskant Hebron. Daar het hy vir die Here ’n altaar gebou. Op ’n dag het Amrafel (die koning van Sinar), Arjok (die koning van Ellasar), Kedorlaomer (die koning van Elam) en Tidal (die koning van Gojim) besluit om oorlog te maak teen Bera (die koning van Sodom), Birsa (die koning van Gomorra), Sinab (die koning van Adma), Semeber (die koning van Sebojim), en Soar (die koning van Bela). Bera en die ander konings het toe ’n bondgenootskap gevorm en in die Siddimvlakte (vandag is dit die Soutsee) bymekaargekom. Twaalf jaar lank moes hulle Kedorlaomer dien, maar in die dertiende jaar het hulle net besluit om te rebelleer. ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote met ’n militêre veldtog begin. Blitssnel het hulle die Refaïete in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran aan die randjie van die woestyn vernietig. Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp. Toe die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) van Kedorlaomer-hulle se opmars hoor, het hulle in die Siddimvlakte bymekaargekom en vinnig hulle troepe vir die geveg opgestel. Teenoor hulle het die gevegsmagte van koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, en koning Arjok van Ellasar stelling ingeneem. Hierdie vier konings moes toe teen die ander vyf se magte veg. Kedorlaomer-hulle het gou die oorhand gekry en die mense het begin vlug. Oral in die Siddimvlakte was daar asfaltgate, en soos die mense gevlug het, het hulle daarin geval. Sodom en Gomorra se konings het ook daarin geval. Die res het berge toe gevlug. Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem. Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan. Iemand wat die geveg oorleef het, het vir Abram van Lot gaan vertel. Abram het in dié tyd by die groot bome van die Amoriet Mamre, ’n broer van Eskol en Aner, uitgekamp. Hierdie mense was Abram se bondgenote. Toe Abram hoor dat sy broerskind gevang is, het hy onmiddellik opgetree. Hy het 318 van sy eie werkers geneem en die vyand in die rigting van Dan agtervolg. In die nag het Abram sy manne stilletjies ontplooi en onverwags op die Kedorlaomermanne toegesak. Hulle het die vyand byna vernietig en die vlugtendes tot so ver as Hoba, noord van Damaskus, agternagesit. Abram het sy broerskind, Lot, gou opgespoor en hom met al sy besittings teruggebring. Abram kon ook al die besittings sowel as al die vroue en kinders wat Kedorlaomer se manne gevat het, terugkry. Nadat Abram vir Kedorlaomer en sy bondgenote verslaan het, was hy weer op pad huis toe. Naby die Sawevallei (dit is die Koningsvallei) het hy skielik die koning van Sodom gesien. Hy het gekom om vir Abram dankie te sê. Nog ’n ent verder het Abram vir Melgisedek ontmoet. Hy was die koning van Salem en ’n priester van die allerhoogste God. Hy het vir Abram kos en wyn gegee, hom geseën en toe gesê: “Die allerhoogste God, die Skepper van hemel en aarde, is naby jou en sal jou gelukkig maak. Loof Hom, die allerhoogste God, wat jou van jou vyande gered het.” Abram was so aangegryp dat hy Melgisedek ’n tiende van alles gegee het. Die koning van Sodom het toe vir Abram gesê: “Jy kan al die buit vir jou hou, maar gee die mense vir my terug.” Abram het toe vir die koning van Sodom gesê: “Nooit aste nimmer nie. Ek het by die Here, die allerhoogste God, die Skepper van die hemel en die aarde, gesweer dat ek niks van u sal vat nie, nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie. Nooit mag u sê dat u my ryk gemaak het nie. Behalwe vir die kos wat my manne geëet het, vra ek niks nie. Maar Aner, Eskol, Mamre en al die ander manne wat my gehelp het, moet hulle deel kry.” Na ’n ruk het die Here in ’n gesig na Abram toe gekom. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is naby jou en Ek pas jou op. Ek sal jou nog baie dinge gee.” Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf. “U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.” Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.” Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.” Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou. Verder het die Here gesê: “Abram, Ek is die Een wat jou familie destyds uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het. Ek het dit gedoen omdat Ek hierdie land vir jou wil gee.” Abram het vinnig gereageer: “Maar hoe weet ek dit, Here? Hoe weet ek dat alles eendag myne sal wees?” Die Here het hom so geantwoord: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal so drie jaar oud. En bring ook sommer ’n tortelduif en ’n jong duif saam.” Abram het die diere bymekaargekry, hulle middeldeur gesny en die helftes teenoor mekaar gesit. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. Die roofvoëls het later op die dooie diere neergesak. Abram moes hulle heeltyd wegjaag. Teen sononder het Abram aan die slaap geraak. Alles rondom hom het donker geword en hy het baie diep geslaap. In sy slaap het die Here toe vir hom gesê: “Abram, daar is iets wat jy moet weet. Jou kinders sal 400 jaar lank in ’n vreemde land woon en soos slawe moet werk. Op ’n dag sal Ek egter die nasie straf wat jou kinders so sal laat swaarkry. Daarna sal Ek jou kinders met baie besittings uit daardie land laat trek. Abram, jy sal oud word en wanneer jy doodgaan, sal hulle jou by jou mense begrawe. Vier geslagte later sal jou kinders weer na hierdie land terugkom. Dan sal die Amoriete se tyd kom om oor hulle sondes gestraf te word.” Na die son ondergegaan het en dit donker was, het daar skielik iets soos ’n rokende vuuroond en ’n vlammende fakkel gekom. Dit het stadig tussen die oopgesnyde diere deur beweeg. Daardie dag het die Here ’n ooreenkoms met Abram gemaak. Hy het vir Abram gesê: “Onthou, aan jou kinders gee Ek hierdie land. Alles van die Nyl in Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraat, sal hulle s’n wees. “Ek gee hulle die lande van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.” Na al die jare was Abram se vrou, Sarai, steeds kinderloos. Uit frustrasie het sy haar Egiptiese slavin, Hagar, na Abram toe gevat en gesê: “Die Here het my nie ’n kind van my eie gegee nie. So, vat haar. Slaap by haar en laat haar kind ook my kind wees.” Vir Abram was dit ’n uitstekende plan. Hulle was immers al tien jaar in die land en nog niks het gebeur nie. Sarai het toe haar slavin, Hagar, die vrou uit Egipte, vir haar man, Abram, as byvrou gegee. Abram het by Hagar gaan slaap en sy het ’n kind verwag. Hagar het toe hoogmoedig geword en Sarai sleg behandel. Diep seergemaak het Sarai vir Abram gesê: “Dis alles jou skuld. Ek verdien nie om so beledig te word nie. Ek het haar vir jou gegee, maar toe sy sien sy verwag, het sy my begin verag. Laat die Here tussen my en jou oordeel.” Abram het toe gesê: “Dis jou slavin, maak met haar wat jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar haar goed gevat en weggeloop het. Die Here het deur sy Engel vir Hagar by ’n fontein in die woestyn ontmoet. Dit is die fontein op die pad na Sur. Hy vra haar toe: “Hagar, Sarai se slavin, sê My, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” “Ek vlug van my eienares, Sarai, af weg,” het sy geantwoord. Die Here se Engel sê toe vir haar: “Gaan terug na daardie plek toe waar jy nie wil wees nie. Gaan terug na jou eienares en doen wat sy vir jou sê. Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle nie getel kan word nie.” Die Here se Engel het ook nog verder gesê: “Jy verwag en binnekort sal jy ’n seun hê. Jy moet hom Ismael noem (dit beteken: ‘God het gehoor’), want die Here het jou gehoor toe jy in jou nood geroep het. Soos ’n wilde donkie in die veld sal jou seun wees. Vry en ongebonde sal hy leef. Niemand sal oor hom heers nie. Teen almal sal hy hom verset en almal sal hom probeer tem. Met sy eie mense sal hy in vyandskap leef.” Hagar het toe ’n naam vir die Here gegee: “U is die God wat mense raaksien en vir hulle sorg. Vandag het ek God gesien wat my raakgesien het.” Tot vandag toe noem hulle die fontein die Beer-Lagai-Roï. Dit is die fontein daar tussen Kades en Bered. Hagar het na Abram en Sarai teruggegaan. Na ’n ruk is haar seun gebore. Abram het die kind Ismael genoem. Abram was 86 jaar oud toe Ismael gebore is. Toe Abram amper 99 jaar oud was, het die Here weer na hom toe gekom. “Abram,” het Hy gesê, “Ek is El Shaddai, die God wat almagtig en sterk is. Jy moet altyd naby aan My leef en net die regte dinge doen. “Ek sluit ’n ooreenkoms met jou dat Ek sal sorg dat jy eendag ’n groot nageslag het.” Terwyl God nog gepraat het, het Abram voor Hom neergeval. God het toe gesê: “Abram, dit is my deel van my ooreenkoms met jou: jy sal nog die pa van baie nasies en van ’n massa mense word. Ek dink baie aan hierdie belofte van My. “Ek gaan jou naam nou dadelik verander. Hulle sal jou nie meer Abram noem nie, maar Abraham, want Ek maak jou die pa van baie nasies.’ “Jou kinders sal baie kinders hê. Uit hulle sal groot nasies en belangrike konings kom. “Ek sal my ooreenkoms met jou nakom, en met jou kinders. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is. Vir jou en jou kinders gee Ek hierdie land. Vandag is dit nog nie joune nie, maar eendag sal dit joune word en ook jou kinders s’n. Hierdie hele land Kanaän sal vir altyd hulle s’n word. Ek sal ook hulle God wees.” God het verder gesê: “My ooreenkoms met jou en jou kinders moet julle van julle kant af gehoorsaam. Daar is een ding wat julle moet doen. Julle mag dit nie vergeet nie. Jou kinders moet dit vir altyd onthou. Dit is dat al julle mans besny moet word aan hulle geslagsorgane. Elkeen se voorhuid moet met ’n mes besny word. Dit sal die bewys wees dat julle Myne is en dat Ek julle God is. Elke seuntjie moet agt dae na sy geboorte besny word. Julle moet dit vir altyd doen. Selfs die kinders van jou werkers moet besny word. En die kinders van daardie werkers wat jy van vreemdelinge gekoop het, moet ook besny word. Kortom: al jou werkers se kinders asook daardie werkers wat jy gekoop het, se kinders moet besny word. Aan julle liggaam sal mense dan kan sien dat julle aan My behoort en dat Ek julle God is. En dit sal vir altyd so wees. Iemand wat nie besny is nie, is nie deel van jou nie. Hy is ook nie deel van My en my ooreenkoms met julle nie.” God het ook verder met Abraham gepraat: “Jou vrou Sarai moet jy nie meer so noem nie. Noem haar eerder Sara. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun baar. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar sal daar nog baie nasies en belangrike leiers gebore word.” Vir Abraham was dit net een te veel. Hy het vooroor geval en saggies begin lag. Hy sê toe vir homself: “Kan ’n ou man van 100 nog ’n kind maak? En kan Sara nog ’n kind in die lewe bring? Sy is al ’n ou vrou van 90. Dit kan tog nie gebeur nie.” Abraham maak toe sy keel skoon en sê: “Here, daar is mos nog die ander seun, Ismael. Wil U hom nie eerder vat en vir hom goed wees nie?” God het egter geantwoord: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n kind in die lewe bring. En jy moet hom Isak noem (wat beteken: ‘God was goed en het geglimlag’). Ek sal my ooreenkoms met hom ook nakom. Ek verbind My vir altyd aan hom en sy kinders. Ek sal sy God en sy kinders se God wees. Ter wille van jou sal Ek ook vir Ismael goed wees. Ek sal vir hom goed wees en hy sal ’n groot nageslag hê. Uit sy kinders sal ’n groot nasie kom met twaalf belangrike volksleiers. Maar My hart is veral by Isak, by die kind wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring.” Toe God klaar met Abraham gepraat het, was Hy net weer weg. Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun, Ismael, en al sy werkers gevat en hulle besny. Of ’n werker deel van Abraham se huishouding was en of Abraham hom later gekoop het, het nie saak gemaak nie. Elke man is besny, soos God vir Abraham gesê het. Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is, en Ismael 13 jaar. Albei is saam op dieselfde dag besny, so ook al sy werkers. Of hulle deel van sy huishouding was en of hulle van vreemdelinge gekoop is, hulle is almal besny. Op ’n dag het die Here weer na Abraham toe gekom. Dit was in die omgewing van Mamre naby die groot eikeboom. Abraham het by die ingang van sy tent gesit, want dit was die warmste tyd van die dag. Skielik sien hy drie mans voor hom. Abraham het opgespring en die mans gaan groet. Hy het laag gebuig en toe gesê: “Menere, kom asseblief nader. Moenie verder stap nie. Bly hier. Dit is ’n voorreg om u te ontvang. Ek bring vir u ’n bietjie water en dan kan u sommer daar onder die boom gaan sit en u voete was. “Ek kry ook gou ’n stukkie brood, dan kan u iets eet voordat u verder loop. Dit is wonderlik dat u nou juis hier by my verby moes kom.” Hulle antwoord: “Goed dan, ons sal so ’n rukkie bly. Maak maar soos jy sê.” Abraham is vinnig tent toe om vir Sara te sê: “Vat gou ’n paar hande vol van jou beste fynmeel, knie dit en maak vir die mense broodrolletjies.” Daarna is hy op ’n drafstap beeste toe. Hy keer ’n mooi jong kalf uit die trop en vra een van sy werkers om dit vinnig te slag en die vleis gaar te maak. Toe die kos klaar was, het Abraham die kalf saam met botterstukkies en melk vir die gaste voorgesit. Terwyl hulle geëet het, het Abraham eenkant onder die boom gestaan. “Waar is jou vrou, Sara?” het hulle hom gevra. “Daar, daar in die tent,” het hy gesê. Een van hulle sê toe: “As ek volgende jaar op dieselfde tyd weer hier verbykom, sal jou vrou ’n seun hê.” Sara het dit gehoor, want sy het agter hulle in die tent se ingang gestaan. Abraham en Sara was egter al oud en Sara lankal verby die tyd dat ’n mens ’n kind kry. Dit is hoekom sy gelag het toe sy die man oor ’n seun hoor praat het. Sara het vir haarself gesê: “My lyf is al veels te oud vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.” Die Here vra toe vir Abraham: “Waarom het Sara netnou gelag? En waarom het sy gedink sy is te oud vir ’n kind? Is enigiets dan vir die Here onmoontlik? Oor ’n jaar is Ek weer hier, dan sal Sara ’n seun hê.” Sara het skielik bang geword en ontken dat sy gelag het, maar die Here het gesê: “O ja, jy het!” Later die middag het die drie mans opgestaan en op ’n plek gekom waar hulle Sodom kon sien. Abraham het ’n ent saamgestap. Terwyl hulle so stap, het die Here gedink: “Sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek met Sodom gaan doen? Abraham se kinders gaan tog ’n groot en sterk nasie word en hulle sal baie mense wees. Al die volke sal Abraham ken; daarom sal dit met hulle goed gaan. Van alle mense het Ek Abraham uitgesoek om my spesiale boodskapper te wees. Hy het nog altyd naby my geleef. Hy sal sy kinders van My vertel en hulle sal ook naby My leef. Hulle sal weet hoe om reg te leef en die regte dinge te doen. Daarom sal Ek nog al my beloftes aan Abraham waar maak.” Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge. En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.” Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het. Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges? Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie? U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.” Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.” Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra: Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?” “Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.” “En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie. Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar. Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie. En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar. Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe. Teen die aand se kant het die twee engele in Sodom aangekom. Op daardie oomblik het Lot juis by die stadspoorte gesit en gesels. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan, hulle vriendelik gegroet en voor hulle gebuig. “Menere,” het hy gesê, “welkom hier in Sodom. U kan vannag sommer by my oorslaap. Daar kan u was en ontspan en môre vroeg weer verder gaan.” Hulle wou nie en het gesê: “Baie dankie, maar ons slaap sommer op die stadsplein.” Lot het egter so aangehou dat hulle uiteindelik saam met hom is. Hy het vir hulle lekker kos gemaak en ook broodrolletjies voorgesit. Hulle het saam geëet. Net voor slaaptyd was daar skielik ’n geraas buite. Al die stad se mans het voor Lot se huis saamgedrom. Almal was daar; jonges en oues. Hulle het Lot geroep en gevra: “Waar is die mans wat vroeër vanaand hier by jou was? Bring hulle uit. Ons wil hulle sien en met hulle seks hê.” Lot het uitgegaan en die deur agter hom toegesluit. Hy het toe mooi met hulle gepraat: “Asseblief, my broers, moet tog nie iets onverantwoordeliks aanvang nie. Kyk, ek het twee dogters. Hulle is hier binne-in die huis. Hulle het nog nooit by ’n man geslaap nie. Ek is bereid om hulle vir julle te bring en julle kan met die dogters doen net wat julle wil. Maar moet in hemelsnaam niks aan die twee mans doen nie. Hulle is my gaste vir die nag.” Die skare mans was egter onbeheerbaar. Hulle het Lot eenkant toe gestoot en gesê: “Wie is jy nou eintlik? Jy het hier as ’n vreemdeling aangekom en nou wil jy oor ons baasspeel. Ons sal jou nog vernietig. Ons sal nog erger dinge aan jou doen as aan die mans in jou huis!” Die skare het toe vorentoe begin beur en Lot teen die deur vasgedruk. Hulle wou die deur oopbreek. Die twee mans binne-in die huis het Lot egter vinnig teruggepluk en die deur gesluit. Skielik het hulle met ’n helder en skerp lig die mans verwar, sodat hulle wat by die huis se ingang saamgedrom het, nie die deur kon kry nie. Toe het die twee mans vir Lot gesê: “Ons sal moet vinnig spring. As daar nog ’n seun of ’n dogter saam met jou in die huis is, moet jy hulle dadelik roep. En as daar nog een van jou mense in die stad is, moet jy hulle nou uit hierdie plek kry. Ons is op die punt om die stad te verwoes. Hierdie stad se sondes is so groot dat die Here ons gestuur het om dit vernietig.” Lot is toe haastig weg na die skoonseuns wat met sy oudste dogters getroud was, en het uitasem vir hulle gesê: “Staan op en gaan dadelik weg, want die Here is op die punt om die stad te vernietig.” Lot se skoonseuns het gelag, want hulle het gedink hy maak ’n grap. Teen dagbreek het die engele Lot aangejaag en gesê: “Nou moet julle regtig baie vinnig vertrek. As jy en jou vrou en die twee dogters nie nou vertrek nie, sal julle saam met die stad vergaan.” Lot het nog aanhou draai. Toe gryp die engele hulle hande en lei hulle na ’n veilige plek buite die stad. Die Here het vir Lot-hulle omgegee; daarom het Hy hulle veilig uitgelei. Toe hulle veilig was, het een van die engele gesê: “Vlug vir julle lewe. Moet net nie omkyk nie en moet nie sommer op enige plek gaan stop nie. Vlug liewers berge toe. Doen dit nou, anders sterf julle almal.” Lot het egter vinnig geantwoord: “Nee, Meneer, dit kan nie gebeur nie. U het my tot nog toe net gehelp. U was albei so goed vir ons en u het ons lewe gespaar. Maar, Meneer, ek kan nie nou berge toe vlug nie. Ek sal dood wees nog voordat ek daar kom. Daar is egter ’n dorpie net agter die eerste bult. Dit is maar ’n klein ou plekkie, maar daar sal ons veilig wees. Niemand sal ons daar kry nie en geen ellende sal ons daar tref nie. So, asseblief, Meneer, laat ons tog daarheen gaan.” Hy het toe geantwoord: “Goed dan, julle kan daarheen vlug. Ek sal aan julle dink en die dorpie nie verwoes nie. Maar maak tog net gou, want ek kan niks doen voordat julle daar is nie.” Daarom noem hulle die dorpie Soar (wat “’n onbeduidende ding” beteken). Die son was net op toe Lot-hulle in Soar aankom. Toe het die hel losgebars. Die Here het swaelvuur op Sodom en Gomorra laat neerreën. Hierdie vuur het alles en almal voor die voet verdelg. Die Here het al die stede in die omgewing heeltemal vernietig, al die inwoners doodgemaak en al die plante tot op die grond verwoes. Niks het oorgebly nie. Lot se vrou het egter omgekyk en onmiddellik in ’n soutpilaar verander. Vroeg die volgende oggend is Abraham terug na die plek waar hy die vorige dag nog met die Here gepraat het. Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms. Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie. Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon. Lot se oudste dogter sê toe eendag vir haar suster: “Pa word oud en hier is geen man in die omgewing met wie ons kan trou nie. Kom ons maak Pa dronk en dan gaan slaap ons by hom. Deur Pa kan ons dan vir ons ’n nageslag bou.” Daardie aand het hulle Lot dronk gemaak. Toe hy goed dronk was, het die oudste by hom gaan lê. Lot het nie eens geweet dat sy oudste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie. Die volgende oggend het die oudste vir die jongste dogter gesê: “Ek het laas nag by Pa geslaap. Vannag is dit jou beurt. Ons maak hom eers goed dronk en dan gaan lê jy by hom. So sal ons darem ’n nageslag hê.” Daardie aand het hulle toe weer hulle pa dronk gemaak en ook die jongste dogter het by hom geslaap. Lot het weer nie eens geweet dat sy jongste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie. So het elkeen van die dogters ’n kind van hulle pa verwag. Die oudste het ’n kind gebaar en hom Moab genoem. Tot vandag toe is hy die stamvader van die Moabiete. Die jongste dogter het ook ’n seun gehad en hom Ben-Ammi genoem. Tot vandag toe is hy die stamvader van die Ammoniete. Abraham het in die suidelike deel van die land rondgetrek en tussen Kades en Sur kamp opgeslaan. Terwyl hy in die omgewing van Gerar getrek het, het die mense hom oor sy vrou begin uitvra. Abraham het toe gesê dat sy vrou Sara eintlik sy suster is. Abimelek, die koning van Gerar, het Sara gesien en manne gestuur om haar te gaan haal. Die Here het egter in ’n droom vir Abimelek gesê: “Jy is so goed as dood oor die vrou wat jy gevat het, want sy is ’n ander man se vrou.” Gelukkig het Abimelek nog nie aan Sara geraak nie. Daarom het hy vir die Here gesê: “Here, sal U regtig ’n onskuldige mens doodmaak? Abraham het self gesê dit is sy suster en ek het hom geglo. Boonop sê sy ook dat Abraham haar broer is. Hoe moes ek dan nou geweet het? My bedoelings was goed en my gewete is skoon, maar hulle het my mislei.” God het Abimelek geantwoord: “Ek weet dit. Ek weet jy het dit goed bedoel, maar hulle het jou mislei. Dit is hoekom Ek gesorg het dat jy nie naby haar kom of by haar slaap nie. Maar nou moet jy haar vir haar man gaan teruggee. As jy dit nie doen nie, sal dit sleg met jou en jou mense gaan. Abraham is eintlik ’n goeie man. Hy is ’n boodskapper van My en hy sal vir jou bid.” Vroeg die volgende oggend het Abimelek sy manne bymekaargeroep en hulle alles vertel. Almal was baie bang. Later het Abimelek vir Abraham laat kom en woedend gevra: “Wat het jy gedoen? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so ’n groot sonde oor my en my mense gebring het? Jy kon ons almal vernietig het. Jy het my en my mense in die allergrootste verleentheid geplaas. Waar het ek jou al ooit sleg behandel? Ag nee wat, Abraham, wat jy gedoen het, is verkeerd.” Abraham het probeer verduidelik: “Ek was bang, Meneer, ek was bang. Ek het vir myself gesê dat hierdie plek se mense nie vir God ken nie en dat hulle my sommer oor my mooi vrou sal doodmaak. En, Meneer, sy is eintlik my suster. My pa is ook haar pa, maar ons het nie dieselfde ma nie. Toe God my destyds geroep en my ver van my ouerhuis af laat weggaan het, het ek vir Sara saamgevat. En ek het haar gevra om oral waar ons kom te sê ek is haar broer. So sal sy wys dat sy my liefhet.” Abimelek het toe ’n klomp skape en beeste gevat en vir Abraham gegee. Hy het ook van sy werkers, mans en vroue, saam met hom gestuur. Hy het ook vir Sara aan Abraham teruggegee. Abimelek het vir Abraham gesê: “My land lê voor jou oop. Jy kan gaan net waar jy wil.” Vir Sara het hy toe gesê: “Jy het niks verkeerds gedoen nie en almal weet dit nou. Ek het 1 000 silwerstukke vir jou broer gegee. Dit is ’n teken dat jy onskuldig is. Jy is nou vergoed hiervoor.” Abraham het vir Abimelek gebid en dit het baie goed met hom en al sy mense gegaan. God het Abimelek heeltemal gesond gemaak en sy vrou, asook al die ander vroue, kon weer kinders in die wêreld bring. Want toe Abimelek vir Sara gevat het, het die Here al die vroue in sy gebied skielik onvrugbaar gemaak, ter wille van Sara. Maar na Abraham se gebed was almal weer vrugbaar. Die Here het onthou wat Hy aan Sara beloof het. Hy het gedoen wat Hy belowe het. Sara het ’n seun in die wêreld gebring, presies soos die Here gesê het. Abraham was al oud toe sy seun gebore is. Abraham het sy seun wat Sara vir hom gegee het Isak genoem. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny omdat die Here vir hom so gesê het. Abraham was 100 jaar oud die dag toe sy seun Isak gebore is. Sara het gesê: “God het my diep gelukkig gemaak. Almal wat my verhaal hoor, sal saam met my lag. Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara nog ’n seun sou borsvoed? Ek het vir hom ’n seun op sy oudag gegee.” Isak het grootgeword en sy ma het later opgehou om hom te borsvoed. Die dag toe dit gebeur, het Abraham ’n groot fees gehou. Sara het gesien dat Ismael eenmaal vir Isak lag. Ismael was Abraham se kind by die Egiptiese vrou Hagar. Sara het Abraham beveel: “Smyt hierdie Egiptiese vrou en haar kind onmiddellik uit. Haar kind kan verseker nie saam met my kind erf nie.” Abraham was baie ongelukkig, want hy was lief vir Ismael. Maar God het vir hom gesê: “Moenie so ongelukkig oor die seun en sy ma wees nie. Maak soos Sara gesê het, want deur Isak sal Ek jou nageslag bou. Met Hagar en Ismael sal dit ook goed gaan. Uit hom sal daar ’n groot nasie kom, want hy is jou kind.” Die volgende dag is Hagar en Ismael toe daar weg. Vroegoggend het Abraham ’n klompie broodrolletjies gepak en ’n watersak volgemaak. Hy het alles op Hagar se rug gesit, hulle gegroet en weggestuur. Hy het gesien hoe hulle in die verte verdwyn. Hagar het in die Bersebawoestyn rondgedwaal. Hulle water het opgeraak. Sy het die kind onder ’n bos neergesit. Sy het eenkant toe gestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n pyl kan skiet. Sy wou nie sien hoe haar kind doodgaan nie. Terwyl sy daar eenkant sit, het sy begin huil. God het gehoor toe die kind huil en deur sy Engel uit die hemel gesê: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees jou kind gaan sterf nie. God het hom gehoor daar waar hy onder die struike lê. Gaan tel hom op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.” Toe het God Hagar se oë laat oopgaan en sy het ’n fontein met helder water gesien. Sy het die watersak volgemaak en die seun ook laat drink. God was naby Ismael en hy het grootgeword. Hy het in die woestyn gewoon en was ’n goeie jagter. Hy het in die omgewing van die Paranwoestyn gewoon en sy ma het vir hom ’n Egiptiese vrou gekry. Ongeveer dieselfde tyd het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, Abraham besoek en gesê: “Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat jy ook al doen, Hy is by jou. Dit is waarom jy my vandag iets voor God moet beloof. Jy moet my jou woord gee dat jy altyd vir my goed sal wees. Ook vir my kinders en hulle kinders, ook vir hierdie land en al sy mense. Onthou, ek was ook vir julle goed. Destyds toe jy en jou vrou by ons was, was ek goed vir julle.” Abraham het geantwoord: “Goed, ek beloof dit.” Abraham het Abimelek egter van ’n slegte voorval by ’n waterput vertel. Abimelek se manne het op ’n dag die put vir hulleself gevat en Abraham se mense kon dit toe nie meer gebruik nie. Abimelek was ontsteld hieroor en het gesê: “Ek weet nie wie so iets gedoen het nie. Waarom het jy my nie vroeër vertel nie? Dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor.” Toe het Abraham skape en beeste gevat en vir Abimelek gegee. Hulle het ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Abraham het toe sewe skaaplammers in die trop gevang. Abimelek het hom verbaas gevra: “Wat doen jy nou? Wat beteken hierdie sewe skaaplammers wat jy eenkant gesit het?” Abraham het geantwoord: “Met hierdie skaaplammers wat ek jou gee, wil ek vir jou sê dat ek self hierdie put gegrawe het en dat dit myne is.” Tot vandag toe word hierdie plek Berseba genoem (wat “put van sewe” of “put van eed” beteken). Dit is waar Abraham en Abimelek ooreengekom het om altyd vir mekaar goed te wees. Na die ooreenkoms by Berseba het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, weer na die Filistyne se land teruggekeer. Abraham het ’n tamarisk by Berseba geplant en daar gebid. Hy het die Here, die ewige God, daar aangeroep. Abraham het nog vir baie jare in die land van die Filistyne gewoon. ’n Ruk hierna wou God vir Abraham toets. Hy het hom geroep en Abraham het gesê: “Hier is ek.” God het toe vir hom gesê: “Vat jou seun Isak, die een vir wie jy baie lief is, en gaan na die land Moria toe. Daar moet jy hom op een van die hoë plekke op een van die berge as ’n brandoffer gaan offer. Ek sal jou daar wys waar jy hom moet offer.” Abraham het niks gesê nie, maar gedoen wat die Here vir hom gesê het. Vroeg die volgende oggend het hy ’n donkie ingespan en die hout vir die brandoffer gekap. Abraham het ook twee slawe saamgeneem, saam met sy seun Isak. Toe is hy weg na die plek wat die Here vir hom sou wys. Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien. Toe het hy vir sy werkers gesê: “Bly julle hier. Pas die donkie en al ons goed mooi op. Ek en die seun gaan net daar anderkant offer en as ons klaar is, kom ons terug.” Abraham het die hout van die brandoffer gevat en op Isak se rug vasgemaak. Abraham het ’n groot mes gedra asook die vuurklip waarmee hulle die hout moes aansteek. Saam-saam het hulle na die plek toe aangestap. Na ’n ruk het Isak die stilte verbreek. “Pa?” het hy gevra. “Ja, seun,” het Abraham geantwoord. “Pa, hier is nou wel hout en vuurklip om dit aan te steek, maar waar is die skaap vir die brandoffer dan?” Abraham het geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie, seun. God sal self nog vir ons ’n skaap gee om te offer.” Die twee het verder gestap. Uiteindelik het hulle by die plek gekom waarvan God gepraat het. Abraham het dadelik afgepak, ’n altaar gebou, die hout gevat en dit op die altaar gesit. Toe gryp hy vir Isak, druk hom op die altaar bo-op die hout vas en met sy ander hand vat hy die mes, die groot mes wat hy die hele pad saamgedra het en waarmee hy Isak wou doodmaak. Op daardie oomblik het die Engel van die Here uit die hemel geroep: “Abraham, dit is Ek. Hou dadelik op. Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.” Net toe Abraham opkyk, hoor hy ’n geritsel tussen die takke. Dit was ’n ram waarvan die horings in die digte takke vasgehaak het. Hy het nader gestap, die ram geslag en dit as ’n brandoffer op die altaar geoffer. So is die ram toe in Isak se plek geslag. Abraham het die plek “Die Here voorsien” genoem. Vandag nog gebruik mense die uitdrukking: “Op die berg van die Here sal Hy altyd voorsien.” Die Here het weer deur sy Engel uit die hemel gepraat en gesê: “Vandag was jy bereid om hierdie lieflingskind van jou te offer; daarom beloof Ek jou dat Ek jou sal seën. Jou kinders sal so baie wees soos die sterre in die hemel en die sand van die see. Jou kinders sal ook nog eendag hulle vyande se sterk stede oorneem. In al die nasies sal mense nog oor jou praat. Dit sal met hulle goed gaan omdat hulle jou ken en deel van jou nageslag is. Al hierdie dinge sal gebeur omdat jy vandag weer gewys het dat jy My liefhet.” Abraham en Isak het na die werkers toe teruggestap en hulle is saam Berseba toe. Abraham het ’n lang ruk in Berseba gebly. ’n Ruk later het Abraham gehoor dat sy broer, Nahor, wat destyds met Milka getroud is, ’n klomp kinders het. Daar was Us, die oudste, en dan was daar nog sy broer Bus, asook Kemuel, die voorvader van die Arameërs, en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. Betuel was die pa van Rebekka. Dit was dan die agt seuns wat Milka vir Abraham se broer, Nahor, in die wêreld gebring het. Nahor het ook ’n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka. Sara, Abraham se vrou, het gesterf. Sy was 127 jaar oud. Sy is in Kirjat-Arba dood. Dit was ’n plek in Kanaän wat tot vandag toe Hebron genoem word. Abraham was hartseer oor Sara se dood en het lank oor haar gehuil. Toe het hy met die begrafnisreëlings begin. Hy is na die Hetiete toe en het vir hulle gesê: “Menere, soos u weet, is ek maar ’n vreemdeling tussen u en besit ek geen grond nie. My vrou is dood en ek wil haar graag begrawe. Vandag vra ek u ’n stukkie grond vir ’n graf.” Die Hetiete het toe vir Abraham gesê: “Dit is goed so, Meneer. U is soos ’n prins van God tussen ons. U kan die beste grond kry. Ons wil almal hê dat u u vrou hier begrawe. Ons ken u en ons weet dat u naby aan God leef.” Abraham het toe laag voor die Hetiete, die mense wat in die land bly, gebuig en vir hulle gesê: “U is baie goed vir my, want u gee my grond sodat ek my vrou kan begrawe. Nou wil ek u versoek om tog met Efron, seun van Sohar, te praat, en vir hom te vra om die grot van Magpela aan my te verkoop. Hy besit dit en dit is aan die rand van sy grond geleë. Ek sal hom sy volle prys betaal. Ons kan die transaksie sommer hier voor u almal afhandel.” Efron was ’n gesiene man. Hy het in die stad se poort saam met al die ander belangrike Hetiete gesit en na Abraham se versoek geluister. Efron het geantwoord: “Nee, Meneer, dit is nie nodig nie. U hoef my niks te betaal nie. Voor al my mense gee ek u vandag die grond met grot en al. U kan sommer vandag nog u vrou daar gaan begrawe.” Abraham het weer voor almal gebuig. Hy het met Efron voor al die ander dorpsraadslede in die poort gepraat. “Meneer, baie dankie. U is werklik goed vir my, maar ek wil eerder die grond by u koop. As ek dit gekoop het, kan ek my vrou daar begrawe.” “Goed dan,” het Efron gesê. “Laat ons tog nie stry nie. Jy kan alles vir vier en ’n half kilogram silwer kry. Dan kan jy jou vrou gaan begrawe.” Abraham het Efron se aanbod aanvaar. Hy het toe die hele bedrag in silwer voor Efron en die Hetiete afgetel en dit vir hom gegee. Almal was oortuig dat die transaksie wettig was. So het Efron se landgoed in Magpela oos van Mamre Abraham se eiendom geword. Die land met die grot en al die bome in die gebied het nou aan Abraham behoort. Alles het gebeur in die teenwoordigheid van al die Hetiete wat in die dorpsraad gedien het. So het dit gebeur dat Abraham sy vrou Sara in die grot van Magpela digby Mamre in die land Kanaän kon begrawe het. Vandag nog word die plek Hebron genoem. Die land het met grot en al van die Hetiete na Abraham oorgegaan. Hy het daarvan ’n begraafplaas gemaak. Abraham was nou baie oud, maar die Here was naby aan hom en dit het goed met hom gegaan. Op ’n dag het hy sy oudste en betroubaarste werker, die een wat in beheer van al sy geldsake was, nader geroep en vir hom gesê: “Kom sit jou hand op my heup en maak ’n belofte. Jy moet my in die Naam van die Here, die God van die hemel en die aarde, beloof dat jy nie vir my seun ’n Kanaänitiese vrou sal kies uit die mense waartussen ek bly nie. Jy moet na die land toe gaan waar ek vandaan kom. Daar moet jy tussen my eie mense vir my seun Isak ’n vrou gaan soek.” Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?” “Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie. Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry. As die jongmeisie nie wil saamkom nie, hoef jy nie verder te soek nie. Dan is jy vry van jou belofte aan my. Jy moet tog net nie my seun daarheen neem nie.” Die werker het sy hand op Abraham se heup gesit en hom opreg beloof om te doen wat hy gevra het. Die werker het toe tien van Abraham se kamele gevat en die beste geskenke, en hy is daar weg. Hy het reguit koers ingeslaan na ’n plek in die noorde van Mesopotamië. Dit was die stad waar Nahor, Abraham se broer, gewoon het. Een middag het die werker uiteindelik daar aangekom. Net buite die stad was daar ’n fontein en hy het die kamele daar laat drink. Dit was teen die aand, die tyd van die dag dat die vroue fontein toe gekom het om water vir die huis te skep. Die werker het gebid en gesê: “Here, U wat die God van my eienaar Abraham is, laat my tog vanmiddag die regte dinge doen en sê. Bewys u liefde vir my meester Abraham. Here, hier staan ek by die fontein en binnekort kom die meisies uit die stad om water te skep. Ek gaan vir een van hulle vra: ‘Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou emmer om te drink,’ en as sy sê: ‘Drink gerus en bring ook jou kamele dat ek hulle kan water gee,’ sal ek weet dit is die vrou wat U vir Isak aangewys het. Dit sal ook die teken wees dat U aan meneer Abraham gedink het en dat U al die beloftes aan hom onthou het.” Voordat hy nog klaar gebid het, het Rebekka met ’n waterkruik op haar skouer daar aangekom. Sy was die dogter van Betuel. En Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou, Milka. Rebekka was ’n baie mooi jongmeisie wat nog glad nie by ’n man geslaap het nie. Sy het by die fontein se trappies afgestap, gebuk, haar kruik volgemaak en toe teruggestap. Abraham se werker het haar heeltyd dopgehou en toe gesê: “Kan ek asseblief ’n bietjie van die water in jou kruik kry?” Sy het gesê: “U is welkom, Meneer. Drink gerus.” Sy het vinnig die kruik van haar skouer afgetel en so gehou dat hy kon drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek gee sommer vir jou kamele ook water. Hulle kan drink soveel as wat hulle wil.” Sy het toe die res van die kruik se water in die trog gegooi en is op ’n drafstap fontein toe om nog te kry. So het sy aangehou totdat al die kamele klaar gedrink het. Abraham se werker het alles eenkant staan en dophou. Hy wou sien of die Here sy reis voorspoedig sou maak. Na die kamele klaar gedrink het, het hy ’n duur, goue ring gevat en dit vir haar gegee. Hy het ook twee kosbare, groot goue armbande geneem en dit om haar arms gesit. Daarna het hy haar gevra: “Wie is jou pa? Is daar dalk plek in sy huis vir my en my mense om te oornag?” “My pa se naam is Betuel. Hy is die seun van Nahor en Milka. En julle is baie welkom by my pa-hulle. Daar is strooi en kos in oorvloed en ook genoeg slaapplek vir almal.” Toe kon Abraham se werker dit nie meer hou nie. Hy het net daar op sy knieë geval en die Here geloof. “Loof die Here, die God van my eienaar Abraham, want Hy is getrou. Prys Hom, want Hy het gedoen wat Hy belowe het. Maak sy Naam groot, want Hy het my sommer reguit na meneer Abraham se mense toe gelei.” Na die man se gebed is die meisie huis toe en sy het haar ma alles gaan vertel. Rebekka se broer Laban het die storie gehoor en is reguit fontein toe om die man te ontmoet. Laban het die goue ring gesien asook die armbande, en hy het gehoor hoe sy suster van die man vertel. Dit is hoekom hy alles gelos het en vinnig fontein toe is. Daar het hy Abraham se werker gekry wat nog die hele tyd by sy kamele gestaan en wag het. Laban het gesê: “Vriend, kom saam met my huis toe. Jy is deur die Here geseën. Kom, waarom staan jy nog daar? By ons huis is daar baie plek vir jou en jou kamele.” Die man is toe saam met Laban huis toe. Daar gekom, het Laban die kamele afgelaai en vir hulle voer en strooi gegee. Hy het ook vir al die mense water gegee sodat hulle hulle kon was. Laban het ’n klomp kos vir die man gebring, maar dié het gesê: “Voordat ek eet, moet ek julle eers alles vertel.” “Goed dan,” het Laban gesê, “praat dan maar eers.” “Ek werk vir Abraham,” het hy begin. “Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele. Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee. My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie. Hy het gesê ek moet na sy pa se mense toe gaan, na sy stam, en daar vir Isak ’n vrou loop soek. Ek was bang en het geantwoord: ‘Sê nou sy wil nie saamkom nie? Wat dan?’ Hy het my gerusgestel en gesê: ‘Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ’n vrou by my pa se familie te kry. As my familie weier dat sy saam met jou terugkom, is jy vry van jou eed en van al jou verpligtings.’ “Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen. Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi. As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’ “Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’ Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee. En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet. Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het. “As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.” Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur. Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.” Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het. Hy het vinnig goue en silwer geskenke gaan haal en dit saam met ’n klomp klere vir Rebekka gegee. Hy het ook geskenke vir haar ma en broers gegee. Toe het hy en die mans geëet en gedrink en die nag daar oorgebly. Die volgende oggend het die werker gesê: “Ek wil baie graag nou teruggaan.” Rebekka se broers en haar ma het gesê: “Wag ’n rukkie. Laat haar vir nog so ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy saam met jou gaan.” “Mense,” het die werker gesê, “julle was baie goed vir my, maar moet my tog nie nou keer nie. Die Here het my gehelp om te doen wat ek moes doen, en nou wil ek so gou moontlik na my meester teruggaan.” “Goed dan,” het hulle geantwoord. “Kom ons roep Rebekka en laat haar besluit.” Hulle het Rebekka laat kom en vir haar gevra: “Wil jy nou al saam met hierdie man weggaan?” En sy het geantwoord: “Baie graag.” Die familie het toe hulle suster, Rebekka, asook die vrou wat haar grootgemaak het, gegroet. Hulle het ook Abraham se werker en al die mans wat saamgekom het, gegroet. Almal het vir oulaas om Rebekka gestaan en gesê: “Ons suster, mag jy baie kinders hê, duisend maal tien duisend kinders. En mag jou nageslag sterk wees, sterk genoeg om die vyand se stede te oorwin.” Daarna het Rebekka en almal saam met haar op die kamele geklim en hulle is saam met die man weg. Dit is dan die verhaal van hoe die werker Rebekka gevat het en haar gebring het. Isak het intussen in die omgewing van die Negev gaan bly en het van Lagai-Roï se waterput af met die vee getrek. Toe hy op ’n keer teen die aand se kant ’n entjie gaan stap het om na te dink, sien hy skielik die kamele wat kom. Op daardie oomblik kyk Rebekka op en sien Isak daar staan. Sy het vinnig afgeklim en vir een van die werkers gevra: “Wie is die man daar anderkant? Die een wat nou na ons toe aangestap kom?” “Dit is die man vir wie ek werk,” het hy gesê. Toe vat Rebekka haar sluier en maak haarself toe. Abraham se werker het vir Isak alles vertel wat gebeur het. Isak het Rebekka na sy ma se tent toe gevat en hy het met haar getrou. Isak het haar liefgekry. Haar liefde het hom getroos omdat hy nog hartseer was oor sy ma se dood. Abraham het weer getrou. Dié keer was dit met Ketura. Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was almal die nageslag van Dedan. Die seuns van Midian was Efa, Efer, Ganok, Abida en Elda. Al hierdie mense het van Ketura afgestam. Abraham het al sy besittings aan Isak bemaak. Aan al sy ander seuns het hy geskenke gegee terwyl hy nog geleef het. Hy het hulle ook na verskillende lande in die ooste gestuur sodat hulle nie by Isak sou bly nie. Abraham het 175 jaar oud geword. Hy was oud en gedaan toe hy die dag dood is. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Toe hy dood is, is hy by sy mense begrawe. Sy twee seuns, Isak en Ismael, het hom gevat en in die Magpelagrot neergelê. Dit is die grot op die grond van Efron, seun van Sohar, die Hetiet, digby Mamre wat Abraham destyds by die Hetiete gekoop het. Daar het Abraham se seuns hom langs Sara begrawe. Na Abraham se dood het God vir Isak, sy seun, geseën en dit het baie goed met hom gegaan. Isak het duskant Beer-Lagai-Roï gaan woon. Hier is die nageslag van Ismael, die seun van Abraham wat Hagar, Sara se Egiptiese slavin, vir hom in die wêreld gebring het. Die name van die seuns is in die volgorde van hulle geboorte: Nebajot is die eersgeborene, Kedar, Adbeël, Mibsam, Misma, Duma, Massa, Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Hierdie name van Ismael se seuns is ook aan hulle woongebiede en blyplekke gegee. Hulle was die twaalf leiers van twaalf stamme. Ismael het 137 jaar oud geword. Toe hy dood is, het hulle hom by sy mense begrawe. Sy nageslag het oor ’n wye gebied gebly, van Gawila af tot by Sur oos van Egipte en in die rigting van Assur. Ismael en sy kinders het teen almal in hierdie gebiede oorlog gemaak. Hier volg die verhaal van Isak, die seun van Abraham. Abraham was Isak se pa. Isak was 40 toe hy met Rebekka, die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van Laban die Arameër getroud is. Rebekka kon egter nie kinders hê nie. Isak het toe baie vir sy vrou gebid en die Here het sy gebede verhoor. Sy het ’n kind verwag, maar Rebekka het swaargekry. Dit was of die twee kinders binne-in haar heeltyd teen mekaar stamp. So erg was dit dat Rebekka naderhand gesê het: “As dit so moet aanhou, hoekom lewe ek?” Sy het gebid en die Here gevra wat sy moet doen. Die Here het geantwoord: “Twee volke stoei in jou skoot. Twee volke sal uit jou kom. Die een sal egter sterker as die ander een wees. Die oudste broer sal die jongste een dien.” Teen die tyd dat Rebekka geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling op pad. Die eerste kind is gebore. Hy was rooierig van kleur en oral op sy lyf was daar hare. Hulle het hom Esau genoem. Toe die tweede kind gebore is, was sy een hand om sy broer se enkel. Hulle het hom Jakob genoem. Isak was 60 jaar oud toe hierdie twee seuns gebore is. Albei seuns het grootgeword. Esau was ’n natuurmens en ’n goeie jagter, en hy het graag buite gekom. Hy het mettertyd die jagkuns aangeleer en ’n vaardige jagter geword. Jakob was heeltemal anders. Hy was ’n eenkantmens wat graag sy tyd in die tent deurgebring het. Isak was mal oor Esau, omdat hy altyd vir sy pa sulke lekker wildsvleis gemaak het. Rebekka weer was erg oor Jakob, haar huiskind. Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het. Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.” “Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.” Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry. Jakob het toe vir Esau ’n stuk brood gegee en van die heerlike lensiebredie vir hom uitgeskep. Esau het alles opgeslurp en ook nog iets gedrink. Toe het hy opgestaan en geloop. So het Esau sy eersgeboortereg vir Jakob gegee. Vir ’n lekker bord kos het hy al sy regte en voordele as oudste seun van die familie weggegee. Daar was weer hongersnood in die land, net soos in Abraham se tyd. Isak het na die land van die Filistyne getrek en vir eers in Gerar gaan bly. Abimelek was toe die koning. Daar het die Here vir Isak gesê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly net hier in die land waarvan Ek jou vertel het. Bly in die land en trek met jou vee rond. Ek sal saam met jou trek en jou baie voorspoedig maak. Elke plek waar jy kom, sal Ek eendag vir jou en jou kinders gee. Lank gelede het Ek dit al aan jou pa, Abraham, beloof. Jou nageslag sal groot wees. Hulle sal so ontelbaar soos die sterre aan die hemel wees. En al die lande rondom jou sal Ek eendag vir hulle gee. Met jou nageslag sal dit so goed gaan dat al die volke rondom hulle deur hulle geseën sal wees. Al hierdie dinge sal gebeur omdat Abraham geluister het toe Ek met hom gepraat het. Hy was lewenslank aan My getrou: hy het reg geleef, hy het my voorskrifte uitgeleef en gedoen wat Ek hom geleer het.” Toe Isak al ’n ruk lank in Gerar gewoon het, het die mense oor hom begin praat. Hulle het gewonder oor die vrou wat altyd by hom was. “Wie is sy tog?” het hulle gevra. Toe Isak hiervan hoor, het hy bang begin word. Rebekka was baie mooi en Isak wou nie sê dit is sy vrou nie. Hy was bang hulle sal hom doodmaak en Rebekka wegneem. Hy het toe vir die mans gesê Rebekka is sy suster. Almal het hom geglo en vir ’n lang ruk het dit goed gegaan. Op ’n dag het Abimelek, die Filistynse koning, by sy venster uitgekyk en iets vreemds gesien: Isak was besig om sy vrou, Rebekka, te soen en te liefkoos. Abimelek het Isak laat roep en woedend gesê: “So, sy is nie jou suster nie, maar jou vrou! Hoe kon jy ons so mislei? Waarom het jy gesê sy is jou suster?” Isak het verleë geantwoord: “Ek was bang dat hulle my sou doodmaak as hulle hoor sy is my vrou.” Abimelek het skerp geantwoord: “Jy kon groot ellende oor ons gebring het. Een van die mans kon net by jou vrou geslaap het en dan was ons almal skuldig.” Abimelek het al sy mense gewaarsku: “Los hulle uit! Wie aan hierdie man of vrou vat, sal doodgemaak word.” Isak het toe in daardie land vir hom grond gekry en begin saai. Die Here het hom geseën en hy het in dieselfde jaar nog uitstekende oeste gehad. Kort voor lank was hy ryk, sommer skatryk. Hy het groot troppe skape en beeste gehad asook baie werkers. Die Filistyne het egter jaloers geword. Hulle het toe grond in al Isak se putte gegooi en dit toegestop. Hierdie putte is destyds nog deur sy pa, Abraham, se mense gegrawe. Abimelek het Isak besoek en gesê: “Gaan liewers weg van ons af, want jy is nou baie ryker en sterker as ons.” Isak het toe weggetrek en in die Gerarvallei gekom. Daar het hy ’n ruk lank gebly. Na ’n tydjie het Isak teruggegaan en begin om stuk-stuk al die waterputte oop te grawe wat sy pa se mense nog gegrawe het. Dit was die putte wat die Filistyne na Abraham se dood toegestop het. Isak het hulle dieselfde name gegee as wat sy pa hulle genoem het. Toe Isak se mense besig was om in die vallei te grawe, het hulle op ’n put met fonteinwater afgekom. ’n Hewige rusie het tussen die mense van Gerar en Isak se herders ontstaan. Gerar se mense het gesê: “Dit is ons water hierdie.” Isak het die put toe “Rusie” genoem omdat hulle daar met hom rusie gemaak het. Isak-hulle het nog ’n put oopgegrawe en weer was daar ’n getwis. Dit was so erg dat hy dit “Klagte” genoem het. Isak het weggegaan en op ’n ander plek ’n put gaan grawe. Toe niemand daaroor gekla het nie, het hy dit “Ruimte” genoem en gesê: “Die Here het nou vir ons ruimte gemaak. Ons sal baie mense word in dié land.” Na ’n ruk het Isak weer sy goed opgepak en Berseba toe getrek. Sommer nog dieselfde nag het die Here na hom toe gekom en gesê: “Isak, Ek is die God van jou pa, Abraham. Jy moet vir niks bang wees nie, want Ek is by jou. Omdat jou pa My getrou gedien het, sal Ek jou seën en vir jou ’n groot nageslag gee.” Uit dankbaarheid het Isak vir die Here ’n altaar gebou en Hom aanbid. Hy het ook sy tent daar opgeslaan en sy mense het weer ’n put gegrawe. Abimelek het uit Gerar getrek en Isak kom besoek. Saam met hom was Agussat, sy vertroueling, en Pikol, die hoof van die leër. Isak vra hulle toe: “Wat wil julle hê? Julle haat my mos. Julle het my dan weggejaag!” Abimelek en sy manne het toe gesê: “Isak, dit is vir ons duidelik dat die Here by jou is. Daarom het ons besluit dat ons met jou ’n ooreenkoms wil maak. Ons wil ’n verbond met jou sluit sodat jy ons nooit sleg sal behandel nie. Toe jy destyds tussen ons gewoon het, was ons nie lelik met jou nie. Ons was goed vir jou en het jou in vrede laat weggaan. Isak, die Here het jou werklik voorspoedig gemaak.” Isak het vir hulle ’n feesmaaltyd voorgesit. Hulle het geëet en gedrink. Vroeg die volgende oggend het hulle opgestaan en ’n ooreenkoms met mekaar gesluit. Isak het hulle gegroet en sy gaste het vertrek. Hulle was bly en gelukkig. Op dieselfde dag het Isak se mense hom van ’n put kom vertel. Hulle was nog besig om te grawe toe hulle skielik sterk water gekry het. Isak het die put Seba genoem en tot vandag toe noem hulle daardie stad Berseba. Toe Esau 40 jaar oud was, het hy met twee Hetitiese vroue getrou: Judit, die dogter van Beëri, en Basemat, die dogter van Elon. Hierdie twee vroue het Isak en Rebekka diep ongelukkig gemaak. Toe Isak al oud en amper blind was, het hy Esau geroep: “Seun, waar is jy?” Esau het geantwoord: “Hier’s ek, Pa.” Isak sê toe vir hom: “Kyk, ek is oud en kan enige tyd sterf. Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe. Skiet daar vir my ’n stukkie wild. Maak dan vir my lekker wildskos soos ek daarvan hou. As die kos reg is, moet jy dit vir my bring sodat ek kan eet en jou nog kan seën voordat ek doodgaan.” Rebekka het elke woord gehoor wat Isak vir sy seun gesê het. Nadat Esau veld toe is om iets vir sy pa te skiet, het sy vinnig na Jakob toe gehardloop en uitasem gesê: “Luister, ek het gehoor wat jou pa vir Esau gesê het. Hy het gesê Esau moet vir hom ’n stukkie wild gaan skiet en lekker kos maak. Na die ete wil jou pa hom dan seën. Jou pa wil dit doen voordat hy sterf. Hy het ook gesê dit is die wil van die Here dat hy Esau seën. Jakob, moet nou nie teëpraat nie. Maak presies soos ek sê. Gaan baie vinnig kraal toe en kry vir my twee lekker vet bokkies. Ek sal dit dan gaarmaak en vir jou pa sy lieflingdis voorsit. Jy moet dit dan vir jou pa vat en sorg dat hy dit eet. Hy sal jou dan seën in die plek van Esau, voor hy doodgaan.” Jakob het Rebekka geantwoord: “Ma, dit gaan nie werk nie. Esau is harig terwyl my vel glad is. Sê nou Pa wil aan my vat. Hy sal dink ek spot met hom en sal my nie wil seën nie. Dan bring ek ’n vervloeking oor my eerder as ’n seën.” Sy ma het geantwoord: “Toe maar, jou ellende sal oor my kom. Doen net wat ek vir jou sê en gaan haal die bokkies wat ek jou gevra het.” Jakob is toe weg en het gedoen wat sy ma gesê het. Hy het alles vir haar gebring en sy het lekker kos vir sy pa gemaak, kos waarvan hy gehou het. Rebekka het haar oudste, Esau, se beste klere geneem en dit vir Jakob, haar jongste, aangetrek. Verder het sy die bok se velletjies om sy hande en om die gladde deel van sy nek gesit. Toe vat sy die lekker kos en die brood wat sy gebak het en sit dit in Jakob se hande. Jakob het na sy pa toe gegaan en hom gegroet. “Dag, Pa,” het hy gesê. Isak het geantwoord: “Ja, hier is ek, maar wie is jy, my seun?” Jakob sê toe vir sy pa: “Dit is ek, Esau, Pa se oudste kind. Ek het gedoen soos Pa gesê het. Sit nou gemaklik sodat Pa van my lekker wildskos kan eet. Daarna kan Pa my seën.” Isak wou egter weet hoe hy so vinnig die wild opgespoor het. Jakob het geantwoord: “Pa se God, die Here, het my gehelp.” Isak het toe vir Jakob gesê: “Kom ’n bietjie nader sodat ek kan voel of jy regtig my seun Esau is of nie.” Jakob het nader aan sy pa gekom. Isak het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is Esau s’n.” Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau. Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?” Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.” Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee. Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.” Jakob het nader gekom en sy pa gesoen. Isak het die reuk van Esau se klere geruik en Jakob geseën. “Werklik, my seun se reuk is soos die reuk van die vrugbare veld, die veld wat die Here geseën het. Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn. Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.” Isak het Jakob skaars klaar geseën en Jakob was net van sy pa af weg, toe Esau van sy jagtog terugkom. Hy het ook lekker kos gemaak en dit vir sy pa gevat. Hy het ook vir sy pa gesê: “Pa, sit regop en eet die lekker wildskos wat ek vir Pa gemaak het. Daarna kan Pa my seën.” Verskrik het Isak gevra: “Wie is jy dan?” Esau het geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste kind.” Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.” Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!” “Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.” “Hy is niks anders as ’n bedrieër nie,” het Esau geantwoord. “Hy het my nou al twee keer bedrieg. Eers het hy my geboortereg gevat en nou my seën. Sy naam is nie verniet Jakob nie, want hy is ’n regte bedrieër.” Esau het verleë gevra: “Pa, het Pa nie dalk vir my ook ’n stukkie seën gebêre nie?” Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?” Esau het weer gepleit: “Het Pa dan waaragtig niks vir my nie? Asseblief, Pa, gee my ook iets!” Isak het net stilgebly. Esau het toe bitterlik begin huil. Isak het vir Esau gesê: “My seun, jy sal altyd swaarkry. Jou grond sal dor en droog bly. Reën sal daar nie baie wees nie. Vir jou lewe sal jy altyd moet veg, en vir jou broer sal jy moet werk. Maar as jy jou lank genoeg verset, kan jy nog sy juk van jou afgooi.” Jakob het vir Esau gekul en Esau het hom begin haat. Esau het toe ’n besluit geneem: “Na my pa se dood gaan ek my broer doodmaak. Ek gaan net wag tot die routyd verby is.” Rebekka het gehoor dat Esau, haar oudste kind, dit gesê het en sy het haar jongste, Jakob, gewaarsku: “Jou broer gaan wraak neem en jou doodmaak. Luister nou baie mooi na my: gaan onmiddellik na my broer Laban in Haran toe. Bly daar totdat jou broer se woede oor is en hy van sy wrok vergeet het. Ek sal jou laat weet as alles veilig is, dan kan jy weer terugkom. Julle is albei my kinders en ek wil julle nie albei op een dag verloor nie. Daarom moet jy onmiddellik vertrek.” Rebekka was baie bitter oor Esau se vroue. Sy het dit ook reguit vir Isak gesê: “Hierdie Hetitiese vroue vergal my lewe. As Jakob ook nog met ’n Hetitiese meisie moet trou, met een van dié land se vroue, sal dit vir my bitter sleg wees.” Isak het Jakob toe geroep en vir hom gesê: “Moet tog nie met een van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan liewers na jou oupa Betuel toe. Hy woon in Paddan-Aram. Loop trou eerder met een van jou oom Laban, jou ma se broer, se dogters. En mag die almagtige God jou help. Mag Hy by jou wees en mag jy baie kinders hê. En mag jou nageslag so groot wees dat julle sommer ’n groot volk sal word. Mag die Here so naby aan jou en jou nageslag wees soos Hy vroeër naby aan Abraham was. En mag die Here vir jou die land gee waarop jy nou as vreemdeling loop; die land wat die Here destyds al aan Abraham beloof het.” Isak het sy seun gegroet en Jakob is daar weg. Hy het reguit koers gekies Paddan-Aram toe. Hy was op pad na sy oom Laban toe. Laban was die seun van Betuel, die Arameër en die broer van Rebekka, Jakob en Esau se ma. Esau was van alles bewus. Hy het gesien toe Isak vir Jakob gegroet het. Hy het gehoor hoe sy pa vir Jakob geseën het en vir hom gesê het om tog nie met ’n Kanaänitiese vrou te trou nie. Dit het hom opgeval hoe gehoorsaam Jakob aan sy ouers was, want hy het sy goed gevat en Paddan-Aram toe gegaan. Esau het hieroor nagedink en besef dat sy Kanaänitiese vroue vir sy pa ’n bitter ding is. Hy het besluit om na sy oom Ismael toe te gaan. Ismael was ’n ander seun van Abraham by ’n Egiptiese vrou, Hagar. Esau het reeds vroue gehad, maar het toe ook nog met Ismael se dogter Magalat getrou. Sy was die suster van Nebajot. Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan. Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak. Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim. Skielik het die Here daar by hom gestaan en met hom gepraat: “Jakob, Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en jou pa, Isak. Die grond waarop jy nou lê en slaap, sal Ek eendag vir jou en jou nageslag gee. Jou nageslag sal so ontelbaar wees soos die stof van die aarde. Hulle sal ook oral oor die aarde wees, in die weste en die ooste, in die noorde en die suide. Oor die hele wêreld sal dit met mense goed gaan omdat hulle deel van jou en jou nageslag is. Onthou een ding, Jakob: Ek is by jou. Ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan. Eendag sal Ek jou weer na hierdie plek en hierdie land terugbring. Ek sal jou nie los voordat Ek al my beloftes aan jou waar gemaak het nie.” Jakob het wakker geskrik en verdwaas om hom rondgekyk. Hy sê toe: “Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie.” Vreesbevange sê hy toe: “Dis ’n verskriklike plek hierdie. Dis niks anders as die Here se blyplek nie. Daar waar ek geslaap het, begin die poort na die hemel toe.” Vroeg die volgende oggend het Jakob sy klipkussing gevat en dit regop gesit. Dit het toe soos ’n pilaar gelyk en hy het olie daarop uitgegiet. Jakob het die naam van die plek verander. Voorheen is die dorp Lus genoem, maar hy het dit na Bet-El verander. Dit beteken “Huis van God”. Jakob het ook ’n gelofte afgelê: “As God werklik by my sal wees, my op die pad na Paddan-Aram sal beskerm, my kos en klere sal gee en my weer veilig na my ouers sal laat terugkeer, sal die Here ook my God wees.” Verder het hy gesê: “Die klip wat ek hier regop gesit het en wat soos ’n pilaar lyk, sal ’n simbool van die Here se teenwoordigheid wees. En, Here, van alles wat U my gee, sal ek ’n tiende aan U teruggee.” Jakob het weer begin stap. Die pad was lank, maar hy het reguit koers gehou na die land oos van die Jordaan. Skielik sien hy iets. Daar, net daar waar drie troppe skape wei, was ’n put, ’n waterput waaruit die skape gedrink het. Bo-oor die put was daar ’n groot klipdeksel. Eers as al die herders saamgekom het, kon hulle die swaar deksel wegstoot. As al die skape klaar gedrink het, het hulle die steendeksel weer teruggerol. Jakob het toe met die mense wat daar rondgestaan het, begin praat: “Dagsê, waar kom julle vandaan?” Hulle het geantwoord: “Ons is maar van hier. Van Haran se omgewing.” Opgewonde vra Jakob toe: “Julle ken nie miskien vir Laban nie? Hy is die seun van Nahor en hy bly glo hier êrens.” “Ons ken hom,” sê hulle. “Gaan dit goed met hom?” vra Jakob. “Ja, so-so,” sê die herders. “Kyk, daar kom sy dogter Ragel nou juis met haar pa se skape aangestap.” Jakob het die herders weer gevra: “Hoekom het julle nou al die skape vir die nag bymekaargemaak? Dit is dan nog helder dag. Gee hulle water en laat hulle dan wei.” “Ons kan nie,” het hulle geantwoord. “Ons moet eers wag totdat al die herders opgedaag het. Dan sal ons almal saam die swaar deksel wegstoot en vir die kuddes water gee.” Terwyl Jakob nog praat, sien hy haar. Sy het pas met haar pa se skape by die put aangekom. Haar naam was Ragel en sy was ’n herder. Jakob kon dit nie glo nie. Was dit werklik Ragel, die dogter van sy ma se broer? Was dit werklik sy oom Laban se skape? Hy het onmiddellik na die put toe gestap, die swaar deksel weggerol en die skape begin water gee, die skape van sy ma se broer. Jakob kon dit meer hou nie. Hy het vorentoe gestap, Ragel gesoen en begin huil. Toe het hy haar alles vertel. Van sy pa en sy pa se mense. Van sy ma, Rebekka, en hoe dit met haar gaan. Ragel was oorstelp. Sy het na haar pa toe gehardloop en hom alles vertel. Laban kon sy ore nie glo nie. Dat Jakob, sy eie suster se seun, hier kan wees, was mos nie moontlik nie. Laban het alles net so gelos en na Jakob toe gehardloop. Hy het hom omhels, hom gesoen en na sy huis toe gebring. Jakob het vir Laban ook weer alles oor en oor vertel. Later het Laban vir hom gesê: “Jakob, jy is deel van my bloed en van my familie. Bly hier!” Jakob het ’n maand lank by sy oom gebly. Na ’n maand het Laban vir Jakob gesê: “Al is jy deel van ons, gaan jy nie verniet vir my werk nie. Hoeveel moet ek jou ’n maand betaal? Maak jou sommetjies en sê my dan.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi. Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.” “Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.” So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel. Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.” Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi. Laataand het Laban vir Lea, sy oudste, gevat en haar na Jakob toe gebring. Sy het ’n sluier om haar gehad en Jakob het haar nie herken nie. Dié nag het Jakob toe by Lea geslaap. Laban het die nag sommer ook sy slavin Silpa gevat en haar vir Lea gegee. Teen dagbreek het Jakob ontdek hy is bedrieg. Langs hom was Lea en nie Ragel nie. Woedend het hy Laban toegesnou: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het sewe jaar vir jou gewerk sodat ek Ragel kon kry en toe bedrieg jy my. Hoekom het jy dit gedoen?” Kom nou, kom nou,” het Laban gesê. “Hier by ons gebeur dinge anders. Hier trou ’n mens eers met die oudste dogter en dan met die jongste. Vier tog hierdie week die huweliksfees saam met ons, dan sal ek Ragel ook vir jou gee. Ek beloof jou, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob het ingestem. ’n Week lank het hy die huweliksfees gevier. Aan die einde van die feestyd het Laban toe Ragel vir hom as vrou gegee. Laban het toe sy slavin Bilha vir Ragel gegee. Jakob het by Ragel geslaap en hy was baie lief vir haar. Hy het haar liewer gehad as vir Lea. En hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk. Die Here het gesien dat Jakob nie lief was vir Lea nie. Hy het Lea toe baie vrugbaar gemaak, maar Ragel was kinderloos. Lea het ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem en gesê: “Die Here het my hartseer raakgesien. Nou sal my man my uiteindelik liefhê.” Sy het weer ’n seun gehad en gesê: “Die Here het gehoor dat Jakob my nie liefhet nie, en daarom het Hy my hierdie kind gegee.” Sy het hom Simeon genoem. Nog ’n seun is gebore en Lea het gesê: “My man sal my nou werklik liefhê omdat ek vir hom drie seuns gegee het.” Sy het die seun Levi genoem. ’n Vierde seun is gebore en Lea het oorstelp gesê: “Hierdie keer wil ek die Here net loof en prys.” Dit is waarom sy die kind Juda genoem het. Lea het hierna vir eers nie weer kinders gehad nie. Ragel het begin besef dat sy nie vir Jakob kinders kan gee nie. Sy het toe baie jaloers op haar suster geword. Woedend het sy vir Jakob gesê: “Gee my ’n kind of ek gaan dood.” Jakob het hom vererg en skerp gereageer: “Dink jy ek is God? Dink jy ek kan jou vrugbaar maak? Dit is God wat jou kinderloos gemaak het, nie ek nie.” Radeloos het Ragel vir Jakob gesê: “Hier is Bilha, my slavin. Vat haar. Slaap by haar. Laat sy namens my ’n kind in die lewe bring. Deur haar moet my nageslag gebou word.” Ragel het Bilha na Jakob toe geneem. Bilha was vir hom soos ’n vrou en hy het by haar geslaap. Bilha het verwag en vir Jakob ’n kind in die wêreld gebring. Ragel was baie bly en het gesê: “God het reg aan my gedoen. Hy het my gebede gehoor en my hierdie seun gegee.” Sy het hom Dan genoem. Bilha, Ragel se slavin, het nog ’n seun vir Jakob gebaar. Ragel het toe gesê: “Ek en my suster is in ’n groot stryd met mekaar gewikkel, maar gelukkig het ek gewen.” Sy het Bilha se kind toe Naftali genoem. Toe Lea sien sy kan nie meer kinders kry nie, het sy haar slavin, Silpa, gaan vat en haar vir Jakob gegee. Silpa het vir Jakob ’n seun in die wêreld gebring. Lea het net gesê: “Watter goeie geluk!” en die kind Gad genoem. Silpa het nog ’n kind gehad en Lea het gesê: “Mooi so, die geluk is aan my kant. Al die ander vroue sal my sukses raaksien en my gelukkig ag.” Daarom het sy die kind Aser genoem. Op ’n dag, tydens die oestyd, het Ruben in die veld gaan stap. Hy het liefdesappels gesien en dit opgetel. Liefdesappels was ’n vrug wat mense lief gemaak het vir mekaar. Ruben het die liefdesappels vir sy ma gebring. Toe Ragel dit sien, het sy dadelik gesê: “Lea, gee my asseblief van Ruben se liefdesappels.” Lea het geïrriteerd gevra: “Wat? Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog my kind se liefdesappels ook hê.” “Asseblief, Lea,” het Ragel gepleit, “jy kan vannag my beurt kry. Jakob kan by jou gaan slaap, maar dan moet jy my van jou kind se liefdesappels gee.” Lea het die liefdesappels toe vir haar gegee. Toe Jakob die aand van die veld af kom, het Lea hom tegemoetgestap. “Jakob,” het sy geroep, “jy slaap vanaand by my. Ek het klaar daarvoor betaal met Ruben se liefdesappels wat hy opgetel het.” Jakob het toe by Lea geslaap. God het Lea se gebede verhoor en sy het verwag en vir Jakob ’n seun gegee. Dit was die vyfde een. Lea het gesê: “God beloon my omdat ek my slavin vir Jakob gegee het.” Sy het die kind Issaskar genoem. Lea het sowaar weer verwag en nog ’n seun vir Jakob gegee. Dit was die sesde. Lea het gesê: “God het my werklik ’n kosbare geskenk gegee. Hierdie keer sal Jakob presente vir my moet bring, want ek het hom ses seuns gegee.” Sy het die kind Sebulon genoem. Die laaste kind was ’n dogtertjie en Lea het haar Dina genoem. God het egter ook aan Ragel gedink en haar gebede verhoor. En Ragel het verwag. Sy het ’n seun gehad en gesê: “God het my skande en vernedering weggevat.” Sy het hom Josef genoem. Dit beteken: “Mag die Here my nog ’n ander seun ook gee!” Na die geboorte van Josef het Jakob vir Laban gesê: “Laat my asseblief toe om na my ouerhuis en my land toe terug te gaan.” Omdat ’n slaaf se familie die baas se eiendom was, het Jakob ook nog gesê: “Laat my ook toe om my familie saam te vat. Ek het hard gewerk vir hierdie vroue. En my harde werk het jou ryk gemaak.” “Ja, dis waar,” het Laban gesê, “ek moet dit teenoor jou erken. Die Here het my as gevolg van jou ryk gemaak. Daarom, Jakob,” so het Laban voortgegaan, “sal ek jou enigiets betaal as jy sal bly. Jy noem dit en ek betaal.” Jakob het geantwoord: “Jy is reg. Ek was ’n getroue werker en ek het jou kuddes goed opgepas. Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.” “Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra. “Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.” “Wat is dit?” het Laban gevra. Jakob het geantwoord: “Laat my vandag nog deur die kuddes loop en laat ek elke gespikkelde en gestreepte skaap, al die swart lammetjies en al die bokke met spikkels en strepe vir my vat. Dit sal dan my loon wees, niks meer nie.” Jakob het voortgegaan: “Jy kan kom kyk of ek eerlik was. As jy deur my kudde loop, sal elke skaap of bok wat nie spikkels of strepe het nie, gesteelde diere wees. Elke lammetjie wat nie swarterig is nie, sal ’n dier wees wat ek van jou gesteel het.” “Dis goed so,” het Laban gesê. “Maak soos jy wil.” Laban het Jakob weer bedrieg. Hy het gou al die gespikkelde en gestreepte skape en bokke uit die trop geneem. Ook die swart lammetjies. Laban het toe hierdie diere bymekaargemaak en vir sy ander seuns gegee om op te pas. Verder het Laban gesorg dat Jakob ver van sy seuns af bly. Hulle was drie dae se reis van mekaar af. Jakob was op ’n plek waar hy die res van Laban se kudde laat wei het. Ver weg van Laban het Jakob sy eie ding gedoen. Hy het jong lote van populiere, amandel- en plataanbome gevat en dit afgeskil totdat daar sulke wit strepe op die lote was. Hy het toe die lote met die wit strepe by die waterplekke gesit. As die vee kom suip het, was die lote reg voor hulle. Omdat die bokke en die skape by die waterplekke gepaar het, het Jakob hulle tussen die lote bymekaar laat kom. So het hy baie bokke en skape met spikkels en strepe gekry. Die ooie het Jakob apart gehou en hulle by Laban se gespikkelde en gestreepte vee gebring. Op hierdie manier het Jakob vir homself ’n baie sterk kudde opgebou. Hy het hulle weggehou van Laban se vee. Wanneer die sterk diere gepaar het, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit en dit het hulle vrugbaar gemaak. Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. Op dié manier het Laban die swakkes en Jakob die sterkes gekry. Jakob het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad. Jakob het gehoor wat Laban se seuns oor hom rondvertel het. Hulle het gesê: “Jakob het al ons pa se goed gevat. Hy het ryk geword met goed wat aan ons pa behoort.” Jakob het ook gesien dat Laban se houding heeltemal verander het. Hy was nie meer so hartlik soos vroeër nie. Die Here het vir hom gesê: “Jakob, gaan huis toe. Gaan terug na die land van jou pa waar jy gebore is. Ek sal by jou wees.” Toe Jakob op ’n keer met sy vee in die veld was, het hy Ragel en Lea na hom toe laat kom. Daar in die veld het hy vir hulle gesê: “Julle pa se houding het verander. Hy is nie meer so vriendelik teenoor my soos vroeër nie. Gelukkig is die God van my pa nog by my. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het. En tog het hy my gekul. Oor en oor. Hy het my loon voortdurend verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te breek nie, want elke keer as Laban gesê het: ‘Die diere met spikkels is jou loon,’ is daar net gespikkeldes gebore. En as hy gesê het: ‘Die gestreepte diere is jou loon,’ was daar net gestreeptes. So het God julle pa se diere weggeneem en dit vir my gegee.” Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees. “En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’ “Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien. Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’” Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot? Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem. Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.” Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur. Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het. Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel. Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie. Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek. Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg. God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan. Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is. Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het. Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree. Kyk, ek kan julle natuurlik almal vernietig, maar die God van jou pa het my gekeer. ‘Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie,’ het Hy gesê. ‘Dink nou mooi wat jy vir Jakob gaan sê.’ Goed, gaan dan maar. Jy verlang mos nou huis toe, so, gaan maar.” Laban het hom egter nog ’n laaste vraag gevra: “Vir wat het jy my huisgodjies gesteel?” Jakob het Laban geantwoord: “Waarvan praat jy? Kyk, ek was bang dat jy jou dogters met mag van my sou wegvat; daarom het ek gevlug. Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie. Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap. Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie. Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie. Jakob het kwaad geword en Laban trompop geloop: “Wat het ek verkeerd gedoen? Vir wat agtervolg jy my so? Waar het ek oortree? Jy het al my goed deursoek en wat het jy gekry? Kon jy enige gesteelde goed kry? Kom sit dit dan hier voor my en jou mense neer. Laat hulle dan besluit of ek ’n dief is of nie.” Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie. As wilde diere jou diere verskeur het, het ek jou nie eens daarvan vertel nie. Jy het my altyd dubbel en dwars daarvoor laat betaal, of hulle bedags of snags gesteel is. Daarom het ek maar self die dier vervang. Bedags het die verskriklike hitte my geteister en in die nag die koue. So erg was dit dat ek vir lang tye nie kon slaap nie. Twintig jaar het ek vir jou gewerk. Veertien jaar vir jou twee dogters en vir baie jare het ek jou vee opgepas. En wat het jy gedoen? Jy het my salaris aanmekaar verander. As dit nie vir my pa se God, die God van my oupa Abraham en die Beskermer van my pa, Isak, was nie, het ek vandag niks gehad nie. Maar God ken my swaarkry en het my harde werk raakgesien, en daarom het Hy jou gisteraand gewaarsku.” Laban het Jakob toe geantwoord: “Wat praat jy tog? Alles wat jy sien, is myne. Die dogters, die kinders, die vee. Niks maak egter nou meer saak nie. Wat kan ek tog doen of sê wat die dogters of hulle kinders van plan sal laat verander? Jakob,” het Laban gesê, “kom ons maak ’n ooreenkoms. Net tussen my en jou. As ’n herinnering aan ons twee se jare saam.” Jakob het toe ’n klip gevat en dit regop gesit. Hy het sy mense nader geroep en gesê hulle moet ’n klipstapel maak. Toe dit klaar was, het hulle by die klipstapel geëet. Laban het die klipstapel Jegar-Sahaduta en Jakob het dit Galed genoem. “Van vandag af,” het Laban gesê, “is hierdie hoop klippe ’n teken van ons ooreenkoms.” Hy het dit toe ook Galed genoem. Laban het die klipstapel ook nog Mispa genoem. “Dit is ’n teken dat die Here by ons is al sien ons mekaar nie weer nie,” het hy gesê. By die klipstapel het Laban ook vir Jakob gesê: “As jy ooit my dogters sleg behandel of sommer ander vroue byneem, moet jy nie dink God sien dit nie. Hy weet van alles.” Laban het nog ’n laaste woord gehad. “Hierdie klipstapel moet ons twee bind. Ek mag nooit by hierdie klipstapel verbystap om jou te gaan seermaak nie. En jy mag dit ook nie doen nie. Jakob, mag die God van ons vaders by ons wees. Mag die God van jou oupa Abraham en my oupa Nahor ons help om getrou te wees.” Jakob het sy woord gegee en die Beskermer van sy pa, Isak, as getuie aangeroep. Daarna het Jakob vir die Here op die berg gaan offer. Hy het al sy familie genooi om saam te kom eet. Na die ete het hulle almal sommer op die berg geslaap. Laban was vroeg die oggend al op. Hy het sy goedjies gepak en toe die kinders gaan groet, vir Ragel, Lea en al die kleinkinders. Laban het hulle almal gesoen en hulle geseën, en toe is hy terug huis toe. Jakob-hulle het ’n ander koers ingeslaan. Langs die pad het hy engele teëgekom. Jakob het gesê: “Dit is seker waar God se leërmag woon.” Hy het die plek toe Mahanaim genoem, wat “Twee kampe” beteken. Jakob was bang vir Esau. Hy het daarom mense met ’n boodskap na sy broer Esau by die Seïrgebied in Edom gestuur. Hulle moes die volgende sê: “So sê u slaaf Jakob: Meneer, ek is niks en ek verdien ook niks nie. Jare lank het ek vir Laban gewerk. Ek was daar by hom tot ’n kort rukkie gelede. “Oor die jare het ek ’n klompie besittings bymekaargeskraap. Beeste, donkies en skape. En ook nog werkers: mans sowel as vroue. Ek vertel Meneer al hierdie dinge sodat Meneer my sal vergewe en goed vir my sal wees.” Jakob se mense het teruggekom en gesê: “Ons het u broer gekry en hy is op pad na u toe. By hom is daar 400 manne.” Jakob het geskrik en was baie bang. Angsbevange het hy gou al sy mense en diere in twee groepe verdeel. Jakob het by homself gedink: “As Esau die een kamp aanval en vernietig, kan die ander kamp se mense en diere darem nog wegkom.” Hy het eenkant toe gestap en daar gebid: “Here, U is die God van my oupa Abraham en my pa, Isak. By Laban het U vir my gesê: ‘Gaan terug na jou geboorteland. Ek sal daar vir jou goed wees.’ Here, ek is te klein vir u groot liefde. U was baie goed vir my en ek het dit nie verdien nie. Destyds is ek oor die Jordaan met net my kierie. Vandag het ek so baie besittings dat die twee kampe sommer vol staan. En nou, Here, vra ek u hulp. Esau is op pad en ek is baie bang. Red my uit sy hande. Ek is bang hy maak my dood en sommer ook al die vroue en kinders. “Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.” Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee. Hy het hulle toe mooi afgetel: 200 bokooie en 20 bokramme, 200 ooie en 20 ramme, 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkiemerries en 10 donkiehingste. Dit was sy geskenk vir sy broer, Esau. Hy het al die vee in troppe verdeel en ’n leier vir elke trop aangestel. Jakob het hulle nader geroep en gesê: “Julle moet voor loop en ek sal julle volg. Sorg dat daar ’n goeie afstand tussen elke trop is.” Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is. “Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’” Jakob het dieselfde raad vir al die leiers van die ander veetroppe gegee. Hulle moes almal dieselfde vir Esau sê. Almal moes veral onthou om te sê: “U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.” Jakob het by homself gedink: “Dit is goed dat ek al die geskenke vooruitstuur. So kan ek Esau se hart sag maak. As ons mekaar dan sien, vergewe hy my dalk alles.” Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap. Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur. Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur. Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ’n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: “Los my tog nou, want dit is al dagbreek.” Jakob het toe gesê: “Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.” “Wat’s jou naam?” stotter die man. “My naam is Jakob,” het Jakob geantwoord. “Van nou af,” sê die man, “sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.” Die man het verder gesê: “Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen.” Jakob was verbaas. “Wie is jy nou eintlik? En wat is jou naam?” het hy gevra. “Hoekom vra jy my naam?” het die man gesê. Hy het Jakob geseën en toe is hy weg. “Ek het God vannag gesien en kyk, ek lewe nog,” het Jakob gesê. Hy het die plek toe Pniël genoem. Net toe Jakob van Pniël af wegstap, het die son opgekom. ’n Nuwe tyd het vir Jakob aangebreek. Hy was egter kruppel en het van toe af moeilik geloop. Die man het Jakob op die heupsenuwee geslaan, en tot vandag toe eet Israel nie die senuwee in die heupbeen nie. Jakob het opgekyk en Esau met 400 man in die verte sien aankom. Jakob was bang en het vinnig die kinders en hulle ma’s bymekaargemaak. Hy het hulle in vier groepe opgestel. Vooraan was Silpa en Bilha met hulle kinders. Toe Lea en haar seuns. Heel agter was Ragel en Josef. Jakob het reg voor gaan staan. Stadig maar seker het hulle begin loop. Hy het telkens sewe keer grond toe gebuig totdat hy naby Esau was. Esau het skielik begin hardloop, reguit op Jakob af. Toe hy by hom kom, het hy Jakob omhels. Hy het hom vasgehou, sy kop in sy nek gesit en hom begin soen. Albei broers het gehuil. Esau het die vroue en die kinders gesien en gevra: “En al dié mense? Wie is hulle?” Jakob het na die kinders gewys en gesê: “God het hulle vir my gegee.” Silpa en Bilha het toe hulle kinders gevat en laag voor Esau gebuig. Daarna het Lea en haar kinders vorentoe gestap en gebuig. Die laaste twee was Josef en Ragel. Hulle het ook voor Esau gebuig. Esau het weer gepraat: “Jakob, wat is jou bedoeling met al die troppe vee wat vroeër hier verbygekom het?” “Dit is u s’n, Meneer. Alles is u s’n. Ek het gehoop dit sal u sag maak,” het Jakob gesê. Esau het geantwoord: “Dankie, my broer, maar ek het werklik genoeg diere van my eie. Hou dit liewer vir jouself.” Jakob het vinnig teruggeantwoord: “Nee, asseblief, neem dit. Dit is my geskenk aan jou. As jy dit vat, sal jy my baie gelukkig maak.” En toe voeg hy by: “Ai, Esau, om jou gesig weer te sien is soos om God se gesig te sien. Jy was so goed vir my. Neem dan nou my geskenk. God was goed vir my en ek het meer as genoeg. So, neem dit, asseblief.” Esau het die geskenk toe aanvaar. Esau het gesê: “Ek gaan saam met julle. So, kom ons ry.” Jakob het geantwoord: “Soos jy kan sien, is die kinders klein en swak. En die veetroppe met kalwers en lammers beweeg stadig, want hulle is swak. As ons hulle nou gaan dryf, selfs net vir ’n dag lank, gaan hulle vrek.” Jakob het verder gepraat: “Miskien moet jy maar solank vooruitry. Ek kom dan rustig met die vee en die kinders agterna en kort voor lank is ek by jou in Seïr.” Esau het gesê: “Goed, maar ek los ’n klompie manne hier by jou. Hulle kan jou met alles help.” Jakob het geantwoord: “Ag, Esau, baie dankie, maar dit is werklik nie nodig nie.” Esau het toe sy broer gegroet, omgedraai en na Seïr teruggegaan. Jakob het tot so ver as Sukkot gekom. Daar het hy ’n huis en stalle vir sy vee gebou. Dis hoekom hulle die plek Sukkot genoem het, wat “Takskerm” beteken. Van hier af het Jakob later Sigem toe getrek. Jakob-hulle het ’n ver pad gestap, van Paddan-Aram in die noorde af tot by Sigem in Kanaän. Gelukkig het alles goed verloop. Hulle het eers voor Sigem gestaan, maar later het Jakob die grond gekoop waarop hulle gekamp het. Dit het aan Hamor en sy kinders behoort en Jakob het hulle 100 geldstukke daarvoor betaal. Hamor het ’n seun gehad met die naam Sigem. Jakob het ’n altaar gebou en dit genoem: “God is waarlik die God van Israel.” Dina, die dogter van Jakob en Lea, het op ’n dag vir die vroue in die omgewing gaan kuier. Hamor, die Hewiet, was die leier in die gebied. Sy seun Sigem het Dina sien stap. Hy het haar toe gegryp en gedwing om by hom te slaap. Na die tyd het Sigem baie van Dina begin hou. Hy was verlief op haar en hy het hard probeer om haar hart te wen. Sigem het toe sy pa se hulp ingeroep. “Pa,” het hy gesê, “help my tog dat Dina my vrou kan word.” Jakob het intussen die skoknuus verneem. Hulle het hom kom vertel hoe Sigem sy Dina-kind se lewe vernietig het. Jakob het aanvanklik niks gedoen nie, want hy wou eers vir die seuns wag. Hulle was nog met die vee in die veld. Na ’n ruk het Hamor, Sigem se pa, by Jakob aangekom. Hy wou met hom oor Sigem se liefde vir Dina praat. Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie. Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.” Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou. Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.” Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal. Julle kan vir Dina vra net soveel as wat julle wil en ek sal betaal. Ek sal alles gee net solank sy my vrou kan word.” Jakob se seuns was nog woedend oor die ding wat Sigem met hulle suster gedoen het. Hulle het toe ’n baie slegte plan beraam. Hulle het vir Sigem en sy pa, Hamor, gesê: “Ongelukkig kan ons nie. Ons kan tog nie ons suster aan iemand gee wat nie besny is nie. Dit sal mos ’n skande wees. Daar is egter wel ’n moontlikheid: julle moet soos ons word en julle laat besny. As julle dit doen, word alles natuurlik makliker. Ons kan dan met gerustheid ons dogters vir julle gee en ons seuns kan ook sonder enige probleme met julle dogters trou. Ons kan dan saamwoon en een volk word. As julle vandag egter anders besluit, vat ons Dina en gaan weg.” Vir Hamor en Sigem het alles goed geklink en hulle is daar weg. Die jongman, Sigem, het Dina so begeer dat hy onmiddellik met die voorbereidings vir die besnydenis begin het. Vir sy familie was Sigem ’n baie belangrike man. Hamor en sy seun Sigem het die lede van die dorpsraad by die stadspoort gaan ontmoet. Hulle wou die dorpsraadslede van hulle ervaring vertel. Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies. Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie. Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.” Die dorpsraad het met Hamor en Sigem saamgestem en elke man in die dorp is besny. Op die derde dag het al die mans nog baie pyn gehad. Dina se twee broers, Simeon en Levi, het toe ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het die dorp binnegery en op ’n gegewe oomblik het hulle die swaarde uitgeruk en al die mans in die dorp voor die voet uitgewis. Selfs Hamor en Sigem is doodgemaak. By Sigem se huis het hulle vinnig hulle suster, Dina, gaan haal en uit die dorp gejaag. Toe Jakob se ander seuns hiervan hoor, was hulle vuur en vlam. Hulle het die stad binnegejaag en net dooies sien rondlê. Toe het hulle die stad genadeloos begin plunder. Hulle verskoning was dat Sigem vir Dina verkrag het. Hulle het net mooi alles gevat, alles wat in die stad was asook buite in die veld. Al die mense se kleinvee, beeste, donkies en besittings. Selfs vroue en kinders is geroof en as gevangenes saamgeneem. Alles wat in die huise was, het Jakob se kinders vir hulleself gevat. Jakob was baie ontsteld oor alles. Vir Simeon en Levi het hy reguit gesê: “Julle het my in die allergrootste ellende gedompel. Almal in hierdie land, veral die Kanaäniete en die Feresiete, sal my nou haat. Ons is maar ’n klein klompie mense en as hulle saamstaan, is dit klaarpraat met ons.” Maar die kinders het weereens hulle swak verskoning herhaal: “Maar, Pa, hy het dan ons suster soos ’n slet behandel.” God het vir Jakob gesê: “Gaan Bet-El toe en bly ’n ruk daar. Bou daar ’n altaar vir die God wat goed was vir jou toe jy destyds vir Esau gevlug het.” Jakob het toe al sy huismense en werkers bymekaargeroep en gesê: “Los nou eens en vir altyd al julle vreemde gode. Was julle skoon en trek skoon klere aan. Ons gaan binnekort Bet-El toe. Daar gaan ek ’n altaar vir die Here bou, omdat Hy geluister het toe ek moedeloos was en Hy altyd saam met my op die pad was.” Almal het hulle afgode gebring asook hulle oorringe. En Jakob het al die goed gevat en dit onder die groot boom duskant Sigem begrawe. Daarna het Jakob en sy mense Bet-El toe getrek. God was by hulle, want Hy het ’n groot angs oor die omringende stede laat kom sodat hulle Jakob en sy mense in vrede Bet-El toe laat trek het. Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom. Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het. Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem. En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het. Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het. God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom. Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.” Skielik was God weg. Toe Hy klaar met Jakob op daardie plek gepraat het, was Hy net weg. Op dieselfde plek waar God met hom gepraat het, het Jakob toe ’n klipstapel gepak. Hy het ’n offer van water en wyn daaroor uitgegooi. Hy het ook olie oor al die klippe gegooi. Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het. Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het. Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.” Maar Ragel was besig om te sterf van die komplikasies met die geboorte. Met haar laaste kragte het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Dit beteken “seun van pyn en smart”. Jakob het later sy naam na Benjamin, “seun van geluk en voorspoed”, verander. Ragel is daar dood. Sy is langs die grootpad na Efrata begrawe. Hulle noem die plek vandag nog Betlehem. Jakob het ’n grafsteen op haar graf gesit, wat nou nog daar staan. Israel is toe verder en het uiteindelik by Migdal-Eder kamp opgeslaan. In hierdie tyd het daar iets verskrikliks gebeur. Ruben, Israel se oudste seun, het by sy pa se byvrou, Bilha, gaan slaap. En Israel het dit uitgevind. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die vrou wat vir Ragel gewerk het, was Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die vrou wat vir Lea gewerk het, was Gad en Aser. Hierdie is dan die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Na baie jare het Jakob weer sy pa, Isak, gesien. Isak het toe in Mamre gewoon. Die plek word ook Kirjat-Arba of deesdae Hebron genoem. Net soos sy pa, Abraham, het Isak ook lang tye hier gewoon. Isak het 180 jaar oud geword. Hy het ’n ou man geword en het in ’n goeie ouderdom gesterf. Esau en Jakob het hom toe by sy mense begrawe. Hier is die familiegeskiedenis van Esau of die Edomiete. Esau het met Kanaänitiese meisies getrou: met Ada dogter van Elon, die Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, die Hewiet, en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot. Uit Ada is Elifas gebore en uit Basemat Reüel. Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in Kanaän gebore. Op ’n dag het Esau besluit om na ’n ander land toe te trek. Hy wou van sy broer, Jakob, af wegkom. Hy het toe sy vroue, sy seuns, sy dogters en al sy werkers gevat en hulle is daar weg. Hy het al die besittings wat hy oor die jare in Kanaän versamel het, asook al sy kleinvee en grootvee, saamgeneem. Esau en Jakob se besittings het net te veel geword en hulle kon nie meer saam boer nie. Die land, wat nog nie aan hulle behoort nie en waar hulle nog as vreemdelinge gebly het, was te klein vir al hulle vee. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon. Hier is die name van Esau se seuns wat in die Seïrberge gebore is. Esau was die voorvader van al die Edomiete. Die name van Esau se seuns was Elifas, seun van Esau se vrou Ada, en Reüel, seun van Esau se vrou Basemat. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Esau se seun Elifas het ook ’n byvrou, Timna, gehad, en haar seun se naam was Amalek. Bogenoemde is die nageslag van Esau se vrou Ada. Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa. En hulle was die kinders van Esau se vrou Basemat. Die seuns van Esau se vrou Oholibama, dogter van Ana, dogter van Sibon, was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was almal Esau se seuns. Die volgende seuns uit Esau se nageslag was almal hoofde van stamme. Elifas, Esau se oudste seun, het die volgende seuns gehad: Teman, Omar, Sefo, Kenas, Korag, Gatam en Amalek. Hulle was die hoofde van verskillende stamme in Edom. Almal het uit die familie van Elifas gekom en hulle was deel van Ada, die vrou van Esau, se nageslag. Esau se seun Reüel het weer die volgende seuns gehad: Nagat, Serag, Samma en Missa. En hulle was almal stamhoofde. Hulle was die hoofde van verskillende stamme in Edom. Almal het uit die familie van Reüel gekom en hulle was deel van Basemat, die vrou van Esau, se nageslag. Esau se vrou Oholibama het die volgende seuns gehad: Jeüs, Jalam en Korag. Almal was stamhoofde uit die geslag van Oholibama, dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit was Esau, dit is Edom, se nageslag, en dit was hulle stamhoofde. Hier is die name van die seuns van Seïr, die Goriet, wat in die land Edom gewoon het: Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan. Hulle was die Goritiese stamhoofde wat uit die omgewing van Seïr getrek en in Edom gaan woon het. Lotan se seuns was Gori en Hemam. Lotan se suster was Timna. Sobal se seuns was Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam. Sibon se seuns was Aja en Ana. En Ana het warmbronne in die woestyn ontdek terwyl hy sy pa, Sibon, se donkies opgepas het. Ana het ’n seun, Dison, en ’n dogter, Oholibama, gehad. Dison se seuns was Gemdan, Esban, Jitran en Keran. Eser se seuns was Bilhan, Saäwan en Akan. Disan se seuns was Us en Aran. Die stamhoofde van die Goriete was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan. Dit was die Goritiese stamhoofde van die verskillende stamme in Seïr. Hier volg die name van die konings wat in Edom regeer het lank voordat daar ’n koning in Israel was. In Edom het Bela, seun van Beor, regeer. Sy hoofstad was Dinhaba. Na Bela se dood het Jobab, seun van Serag wat uit Bosra afkomstig was, regeer. Na Jobab se dood het Gusam regeer. Hy was uit die wêreld van die Temaniete afkomstig. Na Gusam se dood het Hadad, seun van Bedad, koning geword. Hy was die een wat die Midianiete in die Moabsvelde verslaan het. En Hadad se hoofstad was Awit. Na Hadad se dood het Samla regeer. Hy was uit Masreka afkomstig. Na Samla se dood het Saul regeer. En Saul het uit die omgewing van die Regobot-aan-die-Rivier gekom. Na Saul se dood het Baäl-Ganan, seun van Akbor, regeer. Na Baäl-Ganan se dood het Hadar in die stad Paü regeer. Sy vrou was Mehetabel, dogter van Matred, dogter van Me-Sahab. Hier volg die name van die stamhoofde van Esau volgens hulle families en hulle woonplekke. Hulle was Timna, Alwa, Jetet, Oholibama, Ela, Pinon, Kenas, Teman, Mibsar, Magdiël en Iram. Dit is die name van die stamhoofde van Edom volgens hulle woonplekke in die land waar hulle besittings gehad het. En dit was nou die nageslag van Esau, die voorvader van Edom. Jakob het intussen besluit om in Kanaän aan te bly, in dieselfde land waar sy pa al die jare gewoon en rondgetrek het. Toe Josef sewentien was, het hy saam met sy broers, sy pa se seuns by Bilha en Silpa, skape opgepas. Josef het elke dag by sy pa oor sy broers loop en skinder. Jakob was baie liewer vir Josef as vir al sy ander seuns. Josef was die kind wat op sy oudag gebore is en Jakob het hom liefgehad. Hy het toe vir Josef ’n kleed met lang moue en baie kleure laat maak. Al die ander broers het gesien hulle pa was liewer vir Josef as vir hulle. En hulle het Josef begin haat, so erg dat hulle kortaf en onbeskof met hom was. Op ’n dag het Josef ’n droom gehad en sy broers daarvan vertel. Dit het hulle so kwaad gemaak dat hulle hom nog meer gehaat het. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ek wil julle van my droom vertel. Ons was almal in die veld besig om gerwe koring vas te bind. Skielik staan my gerf regop. Julle gerwe het ook regop gestaan en in ’n kring rondom my gerf kom staan. En daar buig julle gerwe toe voor my gerf.” Die broers was woedend en het vir hom gevra: “Mannetjie, wil jy nou oor ons regeer? Wil jy ons baas word?” Die broers het Josef nog meer gehaat oor al sy droompraatjies. Josef het nog ’n droom gehad en het dit sowaar weer vir sy broers loop en vertel. “Hoor hier,” het hy gesê, “ek wil julle van ’n ander droom vertel. Hierdie keer was dit die son, die maan en elf sterre wat gekom en voor my gebuig het.” Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?” Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink. Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.” “Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord. Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem. Terwyl Josef nog so in die veld stap, sien hy ’n vreemde man aankom. “Wat soek jy?” het die man gevra. “Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?” “Hulle was hier gewees,” het die vreemde man geantwoord, “maar toe is hulle weer vort. Ek het gehoor hulle is op pad Dotan toe.” Josef het toe sy broers se spoor gevat en hulle duskant Dotan ingehaal. Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom. Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.” Toe Ruben hiervan hoor, het hy Josef probeer red. “Moet hom tog nie doodmaak nie,” het hy vir sy broers gesê. “Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem. Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure. Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval. Daarna het die broers gaan eet. Hulle het net begin toe hulle ’n stofwolk in die verte sien. Dit was ’n groep Ismaeliete wat van Gilead na Egipte op pad was. Daar was troppe kamele, swaar gelaai met gom, balsem en hars wat hulle in Egipte wou verkoop. Juda het toe opgespring en vir sy broers gesê: “Dit gaan ons tog niks in die sak bring as ons Josef doodmaak en hom in die sand begrawe nie. Ek het ’n baie beter plan. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete, dan hoef ons hom nie dood te maak nie. Hy is darem nog ons broer, ons eie bloed.” Die ander het saamgestem. Intussen was die Ismaeliete met hulle kamele al baie naby en die broers het Josef vinnig uit die put opgetrek. Hulle het Josef toe vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop. Josef is saam met hulle Egipte toe. Ruben het van niks geweet nie, want hy was weg. Toe hy terugkom, is hy reguit na die put toe om Josef uit te haal, maar Josef was reeds weg. Ruben het hartseer geword en sy klere begin skeur. Hy het na sy broers toe gehardloop en uitgeroep: “Die seun is weg! Wat moet ek nou vir sy pa sê?” Hulle het toe ’n boklam geslag en Josef se klere gevat en dit daarin gedoop. Toe het die broers die kleed met die baie kleure en lang moue na hulle pa toe geneem en vir hom gesê: “Pa, ons het dit gekry. Kyk mooi of dit nie dalk Josef se klere is nie.” Hy het dit onmiddellik herken en gesê: “Dit is werklik Josef se klere dié. ’n Wilde dier moes hom aangeval en verskeur het. Josef is uitmekaargeskeur!” Jakob het toe opgestaan, sy klere begin skeur en ’n sak om hom gedraai. Hy was baie hartseer oor Josef se dood en het lank oor hom gerou. Al sy seuns en dogters het hom probeer troos, maar Jakob kon maar net nie oor Josef se dood kom nie. Hy het vir hulle gesê: “Ek sal huilend sterf en ontroosbaar begrawe word om daar saam met my seun te wees.” Dag vir dag het Jakob oor Josef bly rou. Intussen het Josef in Egipte aangekom, waar die Midianiete hom aan Potifar verkoop het. Potifar was die hoof van die Egiptiese koning se lyfwagte. In hierdie tyd het Juda besluit om weg te gaan. Hy het sy broers gegroet en is na Gira in Adullam. Daar het hy op ’n Kanaäniet, Sua, se mooi dogter verlief geraak. Hy het met haar getrou en by haar geslaap. Na ’n ruk het sy verwag en toe haar eersteling gebore is, het hulle hom Er genoem. Sy het weer verwag en haar tweede seun Onan genoem. Toe haar derde kind gebore is, het sy hom Sela genoem. Hy is gebore toe hulle in Kesib was. Juda het vir Er, sy oudste seun, ’n vrou gekry. Haar naam was Tamar. Er was egter ’n slegte mens wat die Here seergemaak het. Die Here het hom vroeg laat sterf. Juda het Onan eenkant toe geroep en gesê: “Jy is nou vir jou broer se nageslag verantwoordelik. Gaan slaap by sy vrou en bou so sy nageslag.” Onan wou nie eintlik nie. Hy het goed geweet dat elke kind wat gebore word, nie syne sou wees nie, maar aan sy broer sou behoort. Hy het toe wel ’n paar keer by Tamar gaan slaap, maar hy het elke keer sy saad op die grond laat val en nie binne-in haar nie. So het hy gesorg dat sy broer se nageslag nie uitgebou word nie. Dit het die Here baie ongelukkig gemaak. Hy het Onan ook vroeg laat sterf. Juda het bang geword en vir sy skoondogter gesê: “Miskien moet jy maar weer by jou pa gaan bly. Omdat jy ’n weduwee is, kan jy mos teruggaan. Wag dan daar tot my jongste, Sela, groot is.” Juda het dit gesê omdat hy bang was Sela gaan ook soos sy twee ouer broers vroeg sterf. Tamar het toe al haar goedjies gevat en is terug na haar pa toe. Lank hierna is Juda se vrou, die dogter van Sua, ook dood. Toe hy klaar oor haar gerou het, is hy saam met sy vriend, Gira van Adullam, Timna toe. Hy wou gaan kyk hoe hulle met die skeer van sy skape gevorder het. Iemand het egter vir Tamar gaan sê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe. Hy wil gaan kyk hoe dit met die skeerdery gaan.” Tamar het vinnig opgestaan en haar donker rouklere uitgetrek. Sy het ’n sluier gevat en dit om haar gegooi sodat niemand haar kon herken nie. Toe het sy by die poort van Enaim gaan sit, want dit was op die pad na Timna toe. Sy het dit gedoen omdat sy gesien het dat Sela al groot was en hy het nog nie met haar getrou nie. Toe Juda haar sien, het hy gedink sy is ’n prostituut, want haar gesig was toegemaak. Hy het reguit na haar toe gestap waar sy langs die pad sit en vir haar gesê: “Kom, ek wil by jou gaan slaap.” Juda het natuurlik nie geweet dis sy skoondogter nie. Sy het gevra: “Hoeveel sal jy my betaal?” Juda het geantwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam uit my kudde stuur.” Tamar het gesê: “Dis nie genoeg nie. Los iets as waarborg dat jy die boklam sal stuur.” Juda het haar gevra: “Wat wil jy hê moet ek los?” “Jou seëlring met sy kettinkie en jou kierie,” het sy gesê. Hy het dit vir haar gegee en by haar gaan slaap. Tamar het toe ’n kind by hom verwag. Na ’n ruk is Tamar weer terug huis toe. Sy het haar sluier afgehaal en weer die klere van ’n weduwee aangetrek. Juda het toe sy vriend, Gira van Adullam, met die boklam gestuur. Hy moes ook Juda se besittings terugbring. Gira kon Tamar egter nêrens kry nie. Hy het naderhand die plek se mans begin uitvra: “Waar is die prostituut wat by Enaim langs die pad gesit het?” “Daar was nog nooit ’n prostituut hier nie,” het hulle geantwoord. Gira is toe met boklam en al terug en het vir Juda gesê: “Ek het oral gesoek, maar ek kon haar nie kry nie. En die ergste is dat die dorpsmense sê daar was nog nooit ’n prostituut daar nie.” Juda het geantwoord: “Nouja, dan moet sy maar die goed hou. As ons langer soek, gaan die mense net vir ons lag. Ek het my deel gedoen en die boklam gestuur, maar jy kon haar nie kry nie. Ons kan nou niks meer doen nie.” Ongeveer drie maande later het hulle vir Juda van Tamar kom vertel. “Jou skoondogter,” het hulle gesê, “het haar soos ’n prostituut gedra en nou verwag sy nog boonop ’n kind.” Juda was woedend en het geskreeu: “Gaan haal haar sodat sy verbrand kan word.” Hulle het Tamar gegryp en haar nader gesleep. Gelukkig kon sy betyds vir haar skoonpa ’n pakkie met ’n boodskap daarby stuur. “Meneer,” het sy gesê, “die man aan wie hierdie goed behoort, is die pa van die kind. Kan Meneer dalk vasstel aan wie die seëlring met sy kettinkie en die kierie behoort?” Juda het dit onmiddellik herken en gesê: “Los die vrou uit! Sy is hoegenaamd nie skuldig nie. Sy was reg en ek verkeerd. Ek moes Sela, my derde seun, aan haar gegee het, maar ek het dit nie gedoen nie. Ek is dus die skuldige. So, laat haar gaan.” Juda het nooit weer by Tamar geslaap nie. Toe die wagtyd verby was en Tamar geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling. Terwyl sy geboorte gee, het een van die kinders sy hand uitgesteek. Die vroedvrou het ’n pers garingdraadjie om sy arm gebind en gesê: “Hy gaan eerste gebore word.” Net toe het hy weer sy hand teruggetrek en sy broer is eerste gebore. Die vroedvrou het gesê: “Jy het jou kans benut en jy is eerste gebore.” Hulle het die seun Peres genoem. Toe is sy broer gebore. Hy het nog steeds die pers garingdraadjie om die arm gehad. Hulle het hom Serag genoem. Josef het toe uiteindelik in Egipte beland. Die Ismaeliete het hom soontoe gevat en hom daar aan ’n belangrike Egiptenaar, Potifar, verkoop. Potifar het in die farao se paleis gewerk en was die hoof van die koning se lyfwagte. Die Here was baie naby aan Josef en dit het goed met hom gegaan. Hy het in Potifar se huis gewoon en ook daar gewerk. Potifar het agtergekom die Here is naby Josef, want hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Potifar het naderhand baie van Josef begin hou. Hy het hom toe as hoof van sy huis aangestel en al sy besittings aan Josef se sorg oorgelaat. Vandat Josef die hoof van sy huis en besittings geword het, het dit met Potifar ook goed begin gaan. Die Here het alles binne en buite sy huis ter wille van Josef geseën. Josef was in beheer van net mooi alles in die huis van Potifar. Al wat Potifar nog gedoen het, was om die kos te eet wat vir hom voorgesit is. Josef was goed gebou en aantreklik en Potifar se vrou het hom raakgesien. Sy het sommer reguit vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Josef het geweier en gesê: “U man het alles in hierdie huis aan my toevertrou. Hy doen niks as hy my nie eers vra nie. In hierdie huis het ek die meeste mag en u man sal my alles gee wat ek vra. Behalwe natuurlik u, sy vrou. Hoe kan ek nou sy vertroue skend en by u gaan slaap? So iets is baie verkeerd en ’n groot sonde teen God.” Potifar se vrou het net aangehou en hom elke dag geteister. Josef het nie toegegee nie en het bly weier om by haar te gaan slaap. Op ’n dag het Josef alleen in Potifar se huis gewerk. Al die ander huiswerkers was buite en Josef het alleen agtergebly. Mevrou Potifar het Josef toe aan sy baadjie gegryp en gesê: “Slaap tog nou by my.” Hy het hom losgeruk en buitentoe gehardloop. Potifar se vrou het met sy baadjie in haar hande gestaan. Toe sy sien sy het nog die baadjie wat Josef in sy haas agtergelaat het, het sy die ander huiswerkers geroep en vir hulle gesê: “My man het hierdie Hebreër in ons huis ingebring en kyk net wat het hy aangevang. Terwyl ek geslaap het, het hy in my kamer ingekom en wou by my kom slaap. Ek het toe so hard as wat ek kan, begin skreeu. En toe hy my gille hoor, het hy gevlug. In sy haas het hy egter sy baadjie hier gelos.” Sy het die baadjie gehou totdat haar man die aand huis toe gekom het. Sy het vir hom ook dieselfde storie vertel: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier aangebring het en wat vir ons moes werk, het in my kamer ingebars terwyl ek geslaap het. Toe ek egter begin skreeu, het hy gevlug, maar hy het sy baadjie hier by my gelos. Dit is nou wat jou slaaf aan my gedoen het.” Toe Potifar dit hoor, was hy woedend. Hy het Josef gegryp en hom in die tronk gegooi. Dit was die tronk waarin al die mense gestop is wat teen die koning oortree het. Die Here was saam met Josef in die tronk. Hy het vir Josef gewys Hy is lief vir hom en die Here het gemaak dat die hoof van die tronk sommer baie van Josef gehou het. Die tronkhoof het Josef toe oor al die gevangenes aangestel. Wat ook al gedoen moes word, het Josef gedoen. Omdat die Here by Josef was, was die hoof van die tronk oor niks bekommerd nie. Hy het alles aan Josef oorgelaat en die Here het Josef gehelp, sodat alles goed gegaan het. Na ’n ruk het die farao se skinker en bakker hulle koning kwaad gemaak. Hy was so kwaad vir sy hoofskinker en hoofbakker dat hy hulle summier in die tronk gestop het. Albei is ook onder die direkte toesig van die hoof van die tronkwag geplaas. Hulle het in dieselfde tronk as Josef beland. Die hoof van die tronkwag het Josef aangesê om die twee te versorg. Na ’n lang tyd in die tronk het die koning van Egipte se hoofskinker en hoofbakker een nag albei ’n droom gehad. Hulle het egter nie geweet wat dit beteken nie. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, sien hy hulle is mismoedig. Hy het toe vir hulle gevra: “Waarom lyk julle vandag so moedeloos?” Hulle het hom geantwoord: “Ons al twee het gedroom, maar hier is niemand wat ons drome kan uitlê nie.” Josef het vir hulle gesê: “Net God kan ’n mens help om drome uit te lê. Vertel my wat julle gedroom het.” Eers het die hoofskinker sy droom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “het daar ’n wingerdstok voor my gestaan. Aan die wingerdstok was daar drie ranke. Elke rank het skaars uitgeloop of dit staan in volle bloei en na ’n ruk het daar ryp trosse druiwe gehang. Terwyl ek dan met die een hand die farao se beker vashou, het ek met die ander hand die ryp druiwe in die beker uitgedruk en dit vir die farao gegee.” Josef het toe gesê: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie ranke dui op drie dae. Oor drie dae sal die koning jou alles vergewe en jy sal jou ou pos terugkry. Dan sal jy weer soos vroeër die beker vir die farao gee. Presies soos in die dae toe jy die hoofskinker was.” Josef het toe die hoofskinker ’n groot guns gevra: “As dit later weer met jou goed gaan en jy onthou my dalk nog, sal ek bly wees as jy vir my ’n goeie woordjie by die farao sal doen. Ek wil so graag uit hierdie plek kom, want ek hoort nie hier nie. Hulle het my met geweld uit my pa se land geneem en my hierheen gebring. Ek het niks verkeerds gedoen nie en ek verdien nie hierdie donker gat nie.” Toe die bakker Josef se verklaring hoor, het hy opgewonde sy eie droom vir hom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “was daar ook drie dinge. Daar was drie mandjies op my kop. In die boonste mandjie was daar die allerheerlikste eetgoed wat net ’n bakker kan bak. Toe het die voëls gekom en hulle het die eetgoed van die boonste mandjie begin opvreet.” Josef het geantwoord: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie mandjies dui op drie dae. Binne drie dae sal die farao jou kop optel en jou aan ’n paal ophang, en al die voëls sal die vleis van jou liggaam begin opvreet.” En dit het presies so gebeur. Drie dae later het die farao verjaar en hy het ’n groot fees vir al sy onderdane gehou. Op die feesdag het die farao aan die hoofskinker en die hoofbakker gedink. Die hoofskinker het weer sy ou werk teruggekry en weer die beker in die farao se hand gesit. Die hoofbakker het hy egter laat ophang, net soos Josef gesê het. Die hoofskinker het nie weer aan Josef gedink nie. Hy het heeltemal van hom vergeet. Twee lang jare het verbygegaan, maar niks het gebeur nie. En toe, een aand, het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Skielik kom daar sewe koeie uit die water. Hulle was mooi en rond van die vet, en het van die groen gras aan die oewer begin vreet. Na ’n ruk het sewe ander koeie uit die water gekom. Hulle was maer en lelik, en het tussen die ander koeie op die Nyloewer gewei. En die lelike, maer koeie het die sewe vet koeie opgevreet. Toe het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n droom gehad. Sewe mooi, vol koringare het aan een stingel opgeskiet. ’n Entjie verder het sewe ander koringare opgeskiet. Hulle was dun en is deur die warm oostewind verskroei. En die sewe dun are het die sewe vol are opgeëet. Toe het die farao weer wakker geword en besef dit was net ’n droom. Die volgende oggend was die farao baie onrustig. Hy het al Egipte se geleerde en wyse manne bymekaargeroep en vir hulle van sy drome vertel. Niemand kon egter sy drome verklaar nie. Toe het die hoofskinker van Josef onthou. “Ek wil u vandag van iemand vertel,” het hy gesê. “Op ’n keer was die koning vir my en die hoofbakker kwaad en het ons albei in die tronk gestop. “Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse. Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê. En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.” Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.” “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.” Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.” Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur. “Farao moet daarom ’n slim man soek met goeie politieke en administratiewe insigte wat oor die hele Egipte kan regeer. U moet ook bekwame bestuurders oor die hele land aanstel. Hulle moet ’n belasting van ’n vyfde van alles wat die land produseer, hef tydens die goeie jare. Tydens die sewe goeie jare moet hulle voedselvoorrade opbou. Met u hulp moet hulle koring in voorraadstede opberg en dit dan goed bewaar. Uit hierdie voedselvoorrade moet die mense dan gedurende die sewe honger jare leef. So sal die land hierdie verskriklike ramp oorleef.” Josef se planne het die farao en al sy amptenare sommer baie beïndruk. Die farao het vir sy amptenare gesê: “Waar is daar nog ’n man soos Josef in wie die Gees van God is? Iemand met so ’n gawe sal ons nooit weer kry nie.” Toe het die farao vir Josef gesê: “Jou God het jou al hierdie dinge vertel; daarom is daar nêrens iemand so slim en wys soos jy nie. Van vandag af sal jy in beheer van my paleis wees en al my mense sal na jou luister. Net ek sal meer mag hê as jy. En ek gee jou alle mag om oor die hele Egipte te regeer.” Op daardie oomblik het die farao sy seëlring afgehaal en dit aan Josef se vinger gesteek. Hy het hom ook fyn linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang. Toe het hy Josef in die wa van die onderkoning laat klim en hom deur die strate gelei terwyl almal skreeu: “Gee pad voor!” So is Josef, die seun van Jakob, dan oor die hele land aangestel. Die farao het verder vir Josef gesê: “Alhoewel ek die farao is, sal niemand in hierdie land ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou toestemming nie.” Die farao het vir Josef ’n ander naam gegee en hom Safenat-Paneag begin noem. Hy het hom ook ’n vrou gegee en haar naam was Asenat. Sy was die dogter van Potifera, die priester van On. Josef het deur die hele Egipte gereis. Hy was 30 jaar oud toe die farao van Egipte hom oor die land aangestel het. Hy het die farao gegroet en met ’n lang reis deur die hele Egipte begin. Gedurende die eerste sewe goeie jare was daar ’n enorme oorvloed kos in die land. Josef het egter presies geweet wat om met die ryk oeste te doen. Met groot kundigheid het hy die kos in stede gestoor. In elke stad is die oeste van die omgewing opgeberg. Josef het massas koring opgegaar. Dit was naderhand so ontelbaar soos die sand van die see. Josef het later opgehou om van alles boek te hou, want dit was onmoontlik. Voor die swaar jare gekom het, het Josef twee seuns gekry. Dit was die seuns wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Josef het die oudste Manasse genoem, want, het hy gesê, “God het my al die swaarkry in Egipte asook my ouerhuis laat vergeet”. Die tweede seun het hy Efraim genoem, want, het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”. Egipte se sewe goeie jare het verbygegaan. Toe het sewe moeilike jare gevolg, net soos Josef gesê het. In al die lande was daar hongersnood, maar in Egipte het die mense kos gehad. Telkens wanneer die honger Egipte se mense gepak het, het hulle by die farao kos gaan vra. Dan het hy vir hulle gesê: “Gaan na Josef toe en doen presies wat hy vir julle sê.” Toe die hongersnood op sy ergste was en daar omtrent geen kos in die land meer was nie, het Josef die groot voorraadkamers oopgemaak en vir elke Egiptenaar sy deel afgemeet. Die hongersnood het dag vir dag vererger. Van oor die hele wêreld het mense kos by Josef kom koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood het die hele wêreld in sy greep gehad. Jakob het gehoor daar is nog kos in Egipte en hy het vir sy seuns gesê: “Vir wat sit julle net daar en niks doen? ’n Paar mense het my nou al van kos in Egipte kom vertel. Julle moet sommer dadelik soontoe gaan en kyk wat julle kan kry. Miskien is daar nog kos vir ons en dan hoef ons nie van die honger dood te gaan nie.” Tien van Josef se broers is toe daar weg om koring in Egipte te gaan koop. Jakob wou nie hê dat Benjamin, Josef se jongste broer, saamgaan nie. Hy was bang daar gebeur iets met die kind soos destyds met Josef. Jakob se seuns is toe daar weg. Soos baie ander mense is hulle Egipte toe om kos te gaan koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood in Kanaän het by die dag erger geword. Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig. Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?” “Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie. Terwyl Josef voor sy broers gestaan het, het hy aan die drome teruggedink, die drome wat hy lank gelede oor hom en sy broers gehad het. En hy het weer met hulle gepraat: “Julle is net spioene wat kom kyk het waar julle die land kan binneval.” “Nee, Meneer, dit is nie so nie. Ons het regtig net kom kos koop. Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.” Josef het weer gepraat: “Ek glo julle nie. Julle het net gekom om te kyk waar die land oop en swak is.” Hulle het weer probeer: “Meneer, kyk na ons. Ons is tog nie spioene nie. Ons is broers. Ons was eers twaalf en almal van dieselfde pa. Hy bly nou nog daar anderkant in Kanaän. Die jongste broer het agtergebly, want hy moes ons pa oppas. En die ander seun, nouja Meneer, ons weet nie meer waar hy is nie.” Josef het aangehou sê: “Ek glo julle nie. Julle is niks anders as spioene nie. Ek sal julle egter ’n kans gee om julle onskuld te bewys. Gaan haal julle jongste broer en bring hom hierheen. Eers as hy hier is, sal ek julle glo. Gebeur dit nie, sweer ek by die farao dat ek julle in die tronk sal stop. Een van julle moet julle broer gaan haal. En die ander bly net hier in huisarres. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat en of julle net spioene is.” Daarna het Josef hulle almal summier drie dae lank in die tronk gestop. Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God. As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.” Almal het saamgestem. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.” Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.” Wat die broers nie geweet het nie, was dat Josef alles verstaan het, want daar was ’n tolk tussen hom en hulle. Josef het eenkant toe gestap en begin huil. Toe hy weer kon praat, het hy Simeon gekies om agter te bly. Hulle het hom voor die ander gevat en in die tronk gesit. Josef het sy mense aangesê om sy broers se houers tot bo toe vol te maak met graan, elkeen se geld in sy sak terug te sit en ook vir elkeen padkos saam te gee. Alles is presies so gedoen. Toe het die broers die sakke op hulle donkies gelaai en hulle is daar weg. Teen die aand se kant toe hulle kamp opslaan, wou een broer voer vir sy esel gee. Toe hy sy sak oopmaak, sien hy sy geld bo in die sak. “Kom kyk hier,” het hy uitgeroep, “iemand het my geld in my sak teruggesit!” Hulle moed het in hulle skoene gesak en hulle het vir mekaar gevra: “Wat is God besig om met ons te doen?” Hulle het weer in Kanaän aangekom en hulle pa, Jakob, gaan groet. Hulle het alles vertel en gesê: “Die man wat die hoof is van die land was baie kortaf met ons. Hy het ons sommer van spioenasie beskuldig. Ons het mooi probeer verduidelik dat ons twaalf broers eerlike mense is wat almal dieselfde pa het, dat die een by Pa in Kanaän is en die ander een dood is, maar dit het niks gehelp nie. Die man het net aangehou dat hy ons eers sal glo as Simeon agterbly terwyl die res van ons kos vir ons families vat. En toe het die man gesê: ‘Eers as julle saam met julle jongste broer na my toe terugkom, sal ek glo dat julle eerlike mense is en nie spioene nie. Dan sal ek Simeon vir julle teruggee en julle kan oral in die land rondgaan.’” Toe die broers hulle sakke met die koring wou leegmaak, sien elkeen sy geld bo-op lê. Die broers en hulle pa, Jakob, was verslae. Jakob het vir hulle gesê: “Ek gaan weer van ’n kind beroof word. Eers is Josef dood, nou is dit Simeon wat ek dalk nooit weer sal sien nie, en dan wil julle ook nog vir Benjamin van my af wegvat. Hoekom moet sulke dinge altyd met my gebeur?” Ruben het Jakob probeer gerusstel: “Pa kan my twee seuns vat en doodmaak as ek Benjamin nie veilig terugbring nie. Ek sal vir hom sorg en hom veilig na Pa toe terugbring.” Jakob het egter geantwoord: “Nee, Benjamin gaan nie saam met jou nie. Sy broer is dood en hy het alleen agtergebly. As daar nou met hom iets op die pad moet gebeur, sal ek op my oudag in die allerbitterste hartseer sterf.” Die hongersnood in Kanaän het vererger. Toe die kosvoorraad amper op was, het Jakob gesê: “Gaan terug Egipte toe en kyk of daar nog kos is vir ons.” Juda het egter gesê: “Ons kan nie, Pa. Die man het uitdruklik gesê ons kom nie sonder Benjamin daar aan nie. Eers as Pa toestem dat ons Benjamin kan saamvat, sal ons vertrek en kos gaan haal. Solank Pa weier, kan ons dit nie in Egipte waag nie. Die man het ons oor en oor gewaarsku om nie sonder Benjamin by hom aan te kom nie.” “Waarom maak julle dit vir my so moeilik?” het Jakob gevra. “Waarom het julle hom van Benjamin staan en vertel?” Hulle het geantwoord: “Omdat die man so knaend was, Pa. Hy het ons aanmekaar oor ons familie uitgevra. Hy wou weet of Pa nog leef en of ons nog ’n ander broer het. Daar was geen uitkomkans nie. Hoe moes ons nou geweet het dat hy sou sê dat ons ons broer na hom toe moet bring?” Juda het toe gesê: “Pa, gee nou die kind vir my en laat ons tog net gaan. Hoe langer ons wag, hoe erger word dit. As Pa nog wil hê dat ons en ons kinders moet bly leef, moet ons onmiddellik vertrek. Ek sal volle verantwoordelikheid vir Benjamin neem en ek sal vir hom sorg. U kan my verantwoordelik vir hom hou. As ek hom nie veilig terugbring nie, is ek lewenslank aan sy dood skuldig. As ons nie so lank getalm het nie, kon ons al ten minste twee keer Egipte toe en terug gewees het.” Uiteindelik het Jakob gesê: “Goed, dan moet julle hom maar saamvat. Maar vat ook vir die man in Egipte van ons beste produkte saam. Sit ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels in julle graansakke. En gee dit vir die man as ’n geskenk. Vat ook genoeg geld saam. Al die geld wat bo in julle graansakke was, moet julle teruggee. Dit was ’n fout. Neem dan nou julle broer, vertrek onmiddellik en gaan reguit na die man toe terug. Mag die groot en almagtige God so vir julle sorg dat die man in Egipte net deernis vir julle sal hê. En mag hy julle broer Simeon vrylaat en hom saam met Benjamin terugstuur. Moenie julle oor my bekommer nie, want as ek moet swaarkry, moet ek swaarkry.” Die mans het die geskenk, dubbel soveel geld en vir Benjamin geneem en hulle is reguit na Josef toe in Egipte. Toe Josef hulle saam met Benjamin sien, het hy vir die hoof van sy huis gesê: “Laat die mense inkom en in die huis bly. Slag dan ’n dier en maak vir ons lekker kos, want ons eet vanmiddag saam.” Die hoof van die huis het presies gemaak soos Josef gesê het en hy het die broers huis toe geneem. Die broers was baie agterdogtig en het vir mekaar gesê: “Dis seker oor die geld wat in ons graansakke was dat hulle ons uitgenooi het. Hulle wil ons natuurlik terugkry; daarom het hulle ons in hierdie hinderlaag gelei. Hulle sal ons oorval, slawe van ons maak en al ons diere vat.” Toe het die broers na die huis se ingang gestap en daar met die hoof van Josef se huis begin praat. “Meneer, miskien kan u ons help,” het hulle gesê. “Ons was ’n vorige keer ook hier om kos te koop. Op pad terug het ons by die nagkamp ons graansakke oopgemaak en tot ons groot verbasing gesien dat elkeen se geld bo-op lê. Die presiese bedrag wat elkeen bestee het. Ons het vandag gekom om hierdie geld vir u terug te gee. Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.” “Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee. Die hoof het die broers in Josef se groot huis ingenooi en hulle ’n plek gegee waar hulle kon was en ontspan. Hy het ook vir hulle donkies kos gegee. Ondertussen het die broers verneem dat hulle die middag saam met Josef moet eet. Terwyl hulle vir hom gewag het, het hulle solank die geskenke reggesit. Toe Josef uiteindelik opdaag, het hulle laag voor hom gebuig en die geskenke vir hom gegee. Josef het gehoor hoe dit gaan en toe gevra: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle my die vorige keer vertel het? Leef hy nog?” Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy leef nog en hy is baie gesond.” Die broers het gekniel en voor Josef gebuig. Josef het na Benjamin, sy ma se jongste kind, gekyk en gevra: “Is dit nou julle jongste broer? Die een van wie julle my vertel het?” Hy het vir Benjamin gesê: “Mag God naby jou wees, seun.” Toe het Josef vinnig uitgestap, want hy wou huil. Hy het hartseer begin word toe hy sy broer weer sien. Hy het in sy slaapkamer gaan sit en huil. Daarna het hy sy gesig gewas en na sy broers toe teruggestap. Hy was weer in volle beheer van homself en het beveel dat die kos bedien moet word. Elkeen se kos is afsonderlik uitgedeel. Eers is Josef bedien, toe die broers en toe die Egiptenaars wat saam met hulle geëet het. Egiptenaars het nooit saam met Hebreërs geëet nie, want vir hulle was dit ’n skande. Almal het teenoor Josef gesit, maar hulle is volgens ouderdom ingedeel, van die oudste tot die jongste. Die broers was baie verbaas hieroor. Hoe sou Josef tog hulle ouderdomme geken het? Almal is met kos van die koning se tafel bedien. Benjamin se porsie was egter elke keer vyf keer groter as dié van die ander. Hulle het almal lekker saam met die koning geëet en gedrink. Toe het Josef vir die hoof van sy huis opdrag gegee: “Stop die mans se sakke tot bo toe vol met kos en sit ook elkeen se geld in die sak terug. Vat dan my beker, die silwer een waaruit ek altyd drink, en sit dit saam met die geld wat hy vir die koring betaal het, bo in die jongste se sak.” Die hoof van die huis het gedoen wat Josef gesê het. Teen dagbreek die volgende oggend is die mans met hulle swaargelaaide donkies daar weg. Hulle was net ’n klein entjie weg toe Josef die hoof van sy huis beveel: “Sit hulle agterna en as jy by hulle kom, moet jy sê: ‘Dit is darem nou vir jou stank vir dank! Waarom het julle die beker gevat? Dit is die beker waaruit meneer Josef elke dag drink en wat hy gebruik om die toekoms te voorspel. Julle het ’n verskriklike ding gedoen.’” Die huisheer is onmiddellik daar weg en het hulle sommer gou ingehaal. Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie. Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel? As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.” Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.” Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak. Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry. Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe. Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval. Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.” Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.” “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.” Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie. Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer. Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste. U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’ Ons het vir u gesê dit is onmoontlik; die seun kan nie van sy pa af weggaan nie, het ons gesê, sy pa sal doodgaan as daar iets met hom moet gebeur. U het egter aangehou en gesê: ‘As julle nie julle jongste broer saambring nie, wil ek julle nie weer sien nie.’ Daarna is ons huis toe en ons het ons pa van alles vertel. Presies soos u gesê het. Na ’n ruk het ons pa gesê ons moet teruggaan om kos te koop. Ons het oor en oor vir hom gesê: ‘Pa weet mos ons kan nie teruggaan nie. Ons kan net gaan as ons jongste broer saamgaan. Sonder hom wil die man ons nooit weer sien nie.’ Ons pa het egter volgehou: ‘Julle weet tog Ragel het my net twee seuns gegee. Een seun het net verdwyn. Tot vandag toe het ek hom nooit weer gesien nie en moet ek maar die storie glo dat wilde diere hom verskeur het. As julle die ander seun ook nou van my gaan wegneem en iets gebeur met hom, sal ek van hartseer sterf.’ So, Meneer, as ek nou moet teruggaan na my pa toe en hierdie seun vir wie hy tog so lief is, is nie by nie, sal dit sy einde beteken. As ek sonder die jongste moet terugkeer, sal ons ons gryse pa van verdriet moet begrawe. “En, Meneer, ek het verantwoordelikheid vir hierdie seun geneem. Ek het vir my pa gesê: ‘As ek nie hierdie kind vir Pa terugbring nie, staan ek lewenslank skuldig voor Pa.’ Laat ek daarom eerder in die plek van die seun agterbly en ek sal lewenslank vir u werk. Laat die kind tog net saam met sy broers huis toe gaan. Hoe kan ek sonder die seun na my pa toe teruggaan? Ek wil tog nie sien hoe hy dag vir dag wegkwyn van verdriet nie.” Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat. Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor. Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan. “Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het? Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help. Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie. God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie! My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom. Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam. Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’ Julle moet al hierdie dinge vir Pa gaan vertel. Julle almal en ook Benjamin het self gesien dat ek leef en dat dit ek is wat met julle praat. Sê vir Pa ek is onderkoning en vertel hom van al die wonderlike dinge wat julle hier gesien het. Julle moet reguit huis toe gaan en vir Pa gaan haal.” Josef het Benjamin toe omhels en begin huil. Benjamin het Josef ook omhels en op sy skouer gehuil. Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat. Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor. Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan. Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.” Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom. Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.” Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad. Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere. En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte. Josef het sy broers gegroet en vir hulle gesê: “Gaan nou reguit Kanaän toe en moenie op pad aan’t stry raak nie!” Die broers is daar weg en het die kortste pad Kanaän toe gevat. Hulle wou so gou moontlik by hulle pa, Jakob, uitkom. By die huis aangekom, het hulle dadelik vir Jakob gaan sê: “Pa, Josef leef nog! En hy is die man wat oor die hele Egipte regeer.” Jakob was stomgeslaan en wou hulle eers nie glo nie. Hulle moes hom toe alles oor en oor vertel. Toe hy al die waens sien wat Josef saamgestuur het om hom te kom haal, het hy hulle begin glo. En dit was of hy ’n nuwe mens geword het. Tot dié mate dat hy gesê het: “Ons het nou genoeg gepraat. My seun leef en ek wil hom nog sien voor ek sterf. Kom, laat ons onmiddellik Egipte toe gaan.” So het dit dan gebeur dat Israel en al sy mense met hulle besittings Kanaän verlaat en Egipte toe getrek het. Op pad het hy by Berseba verbygetrek, waar hy eers stilgehou en geoffer het. Hy het ’n offer gebring vir dieselfde God wat sy pa, Isak, aanbid het. Daardie nag by Berseba het God in ’n visioen met Israel gepraat. Hy het hom geroep: “Jakob, Jakob,” en Israel het geantwoord: “Hier is ek, Here.” God sê toe vir hom: “Ek is God, die God van jou pa, Isak. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek trek saam met jou Egipte toe en eendag sal Ek jou weer laat terugkom. Josef sal vir jou sorg en wanneer jy die dag doodgaan, sal hy jou oë toedruk.” Jakob-hulle is ’n dag of wat later uit Berseba weg. Die seuns het Jakob, asook al die vroue en kinders, in die mooi Egiptiese waens van die farao gelaai. Hulle het ook die veekuddes en al die besittings saamgevat wat hulle oor die jare in Kanaän bymekaargemaak het. Na ’n lang ruk het Jakob en al sy mense in Egipte aangekom. Saam met hom was nie net sy seuns nie, maar ook sy kleinseuns. So ook al sy dogters en kleindogters. Ja, Jakob het al sy kinders en sy hele familie Egipte toe geneem. Hier is die name van al Israel se kinders wat destyds saam met hom Egipte toe is. Daar was Jakob en sy oudste seun, Ruben, asook Ruben se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van ’n Kanaänitiese vrou. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het lank vantevore al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël. Dit is die seuns wat Lea destyds nog vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter, Dina, gehad. Hulle was altesaam 33. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster, Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea gegee. Hulle was altesaam sestien. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Potifera, priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle was altesaam veertien. Dan en sy seun Sugam. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel gegee. Hulle was altesaam sewe. Afgesien van die vroue van Jakob se seuns was daar 66 afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is. In Egipte is daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam 70, en hulle was in Egipte. Toe hulle naby Gosen was, het Jakob Juda gestuur om vir Josef te sê hulle is op pad. Josef het dadelik sy wa ingespan en na sy pa toe gery. Josef was oorstelp van vreugde. Tussen die baie gesigte het hy sy pa s’n gesoek. Toe hy hom kry, het hy die ou man se lyf teen hom vasgedruk en hom gesoen. Josef het begin huil en lank met sy kop op Jakob se skouer gestaan. Vir Jakob was die ontmoeting amper te oorweldigend. Toe hy uiteindelik kon praat, het hy net gesê: “Nou kan ek maar sterf, want ek weet Josef leef - ek het hom gesien.” Josef het vir sy broers en sy hele familie gesê: “Ek gaan nou reguit na die farao toe om vir hom te vertel dat my familie uit Kanaän hier aangekom het. Ek wil vir hom sê my broers boer met kleinvee en hulle het al hulle vee en hulle besittings saamgebring. Wanneer die farao julle dan inroep en vra wat julle doen, moet julle vir hom sê: ‘Ons is veeboere. Van die vroegste tye af tot vandag toe was ons en ons voorouers veeboere.’ As die farao dit hoor, sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars hou niks van kleinveeboere nie.” Josef het toe alles vir die farao gaan vertel en gesê: “My pa en my broers het toe uiteindelik veilig uit Kanaän hier aangekom. Hulle het al hulle vee en besittings saamgebring. Hulle woon op die oomblik in die omgewing van Gosen.” Josef het vooraf vyf van sy broers gevra om saam met hom na die koning toe te gaan. Die koning het vir hulle gevra: “Wat is julle beroep?” Hulle het gesê: “Ons boer met kleinvee, U Majesteit. Net soos ons voorouers al jare lank doen. Ons het Egipte toe gekom om hier ’n weiplek vir ons vee te soek. Die hongersnood in Kanaän is so erg dat daar geen kos vir mens of dier meer is nie. Eintlik is ons vreemdelinge hier, maar ons wil U Majesteit tog vra of ons nie in Gosen kan aanbly nie.” Die farao het hom na Josef toe gedraai en gesê: “Uiteindelik is jou pa en jou broers hier! Egipte lê vir hulle oop. Laat jou pa en jou broers in die beste dele van die land gaan bly. As hulle egter van Gosen hou, kan hulle daar aanbly. En as daar van jou broers is wat goeie veeboere is, kan hulle my veekuddes oppas.” Toe het Josef Jakob laat binnekom en hom aan die koning voorgestel. Jakob het voor hom gebuig en die koning gegroet. “Hoe oud is jy, Jakob?” het die koning gevra. “Ek is al 130 jaar oud, U Majesteit,” het Jakob geantwoord. “Dit is eintlik nie oud nie. In vergelyking met my voorvaders is my jare maar min. My lewe was egter hard en vol swaarkry.” Na ’n ruk het Jakob die koning gegroet en vertrek. Josef het sy pa en broers gehelp om in Egipte gevestig te raak. Hy het hulle in Ramses, die beste deel van Gosen, laat woon en toegesien dat hulle grondregte besit. En hy het gemaak soos die koning gesê het. Hy het ook elke dag vir hulle gesorg. Daar was genoeg vir almal. Van die oudste tot die jongste het kos gehad. Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword. Josef het al die geld in Egipte en Kanaän waarmee die mense vir die koring betaal het, in die paleis bewaar. Naderhand het die mense van Egipte en Kanaän nie meer geld gehad nie. Hulle het alles op koring en kos bestee. Die Egiptenaars het toe vir Josef gesê: “Asseblief, Meneer, gee tog net vir ons kos. Ons het niks om u mee te betaal nie, want al ons geld is op. Moet tog net nie dat ons van die honger doodgaan nie.” “Goed,” het Josef geantwoord, “as julle geld op is, bring dan julle veekuddes. In ruil daarvoor sal ek vir julle kos gee.” So het hulle dan hulle kuddes vir Josef gebring. In ruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies het Josef vir hulle kos gegee. In daardie jaar het Josef kos vir die mense se vee begin ruil. Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond. Meneer, moet tog nie dat ons van die honger doodgaan nie. En moet tog nie dat ons landerye onbewerk en vol onkruid lê nie. Koop dan liewer vir ons en ons landerye en betaal ons met kos. Ons kan maar die koning se werkers word en hy kan maar ons grond besit. As Meneer net vir ons saad kan gee, sal ons bly leef en ons grond sal ook nie verwoes word nie.” Josef het al die grond in Egipte vir die koning opgekoop. Omdat die hongersnood so groot was, het die Egiptenaars geen ander keuse gehad as om hulle grond te verkoop nie. Al die grond het toe die koning se eiendom geword. Al die mense van Egipte het toe die koning se slawe geword. Slegs die priesters se grond het Josef nie opgekoop nie. Hulle het ’n toelaag en kos van die koning ontvang en dit was nie nodig om hulle grond te verkoop nie. Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk. Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.” Hulle het geantwoord: “Meneer, u was baie goed vir ons en u het ons lewe gered. Ons sal graag vir die koning wil werk.” Josef het dit ’n landswet gemaak dat ’n vyfde van die oes aan die koning behoort. Dit is vandag nog in Egipte so. Net die priesters se tempelgronde het nie die koning se eiendom geword nie. So het Jakob en al sy mense toe in Egipte gaan woon. Hulle het in Gosen gebly en baie grond en diere gekoop. In die nuwe land het hulle kort voor lank ’n groot klomp mense geword. Jakob het nog sewentien jaar in Egipte geleef. Hy het 147 jaar oud geword. Toe Jakob naby sy einde was, het hy Josef laat roep. “Josef,” het hy gesê, “as jy my werklik gelukkig wil maak, moet jy my iets beloof. Kom, sit jou hand hier op my heup en gee my jou woord dat jy my nie in Egipte sal begrawe nie. As jy dit beloof, sal dit vir my ’n teken van jou liefde vir my wees. As ek dood is, moet jy my liggaam uit Egipte wegneem en my in Kanaän by my eie mense gaan begrawe. Ek vra jou mooi, Josef, doen dit vir my.” Josef het geantwoord: “Dit is goed so. Ek sal doen wat Pa vra.” “Nee, jy moet my jou erewoord gee,” het Jakob aangedring. Josef het sy pa weer beloof dat hy hom in Kanaän sal begrawe. Jakob het langs sy bed gebuig en die Here gedank. Na ’n ruk het hulle vir Josef kom sê dat sy pa baie siek is. Josef is dadelik soontoe. Hy het ook sy twee seuns, Manasse en Efraim, saamgeneem. Toe hulle vir Jakob sê dat Josef-hulle daar is, was Jakob so bly dat hy sommer sterk gevoel en regop in die bed gesit het. Jakob het weer vir Josef sy lewensverhaal vertel. “Lank gelede,” so het Jakob begin, “het die almagtige God na my toe gekom in Lus (dit is Bet-El), in die land Kanaän. Daar het Hy my geseën en wonderlike dinge vir my gesê. Hy het beloof dat ek ’n groot nageslag sal hê en dat hulle uit verskillende volke sal bestaan. Verder het Hy gesê dat my nageslag nog eendag in die land Kanaän sal woon en dat hulle die land vir altyd sal besit. Hierdie twee seuns van jou, Efraim en Manasse, wat in Egipte gebore is lank voordat ek hier aangekom het, sal soos my eie kinders wees. Net soos Ruben en Simeon my eie kinders is, sal jou twee seuns ook myne wees. Jou seuns wat na hulle twee gebore is, sal joune wees en hulle sal deel van Efraim en Manasse se stamme wees en in hulle erfenis deel. Ek sal jou twee seuns seën ter wille van jou ma, Ragel. Sy is destyds op pad van Paddan-Aram af na Kanaän toe dood, tot my groot verdriet. Net duskant Efrata (wat ons vandag Betlehem noem) is sy dood en ek het haar daar langs die pad begrawe.” Jakob het dofweg twee seuns langs Josef gesien en gevra: “Wie is die seuns daar langs jou?” Josef het geantwoord: “Dis die seuns wat God vir my hier in Egipte gegee het.” En Jakob het gesê: “Bring hulle nader dat ek hulle kan seën.” As gevolg van sy hoë ouderdom was Jakob se oë baie swak en kon hy skaars sien. Josef het toe die seuns nader gebring en Jakob het hulle omhels en gesoen. Jakob het vir Josef gesê: “Ai, Josef, ek het nooit gedink dat ek jou ooit weer sou sien nie, en nou sien ek ook jou twee seuns.” Josef het die kinders van Jakob se skoot afgetel en in eerbied voor sy pa gebuig. Josef het Efraim aan Jakob se linkerkant en Manasse aan sy regterkant laat staan. Jakob het toe sy hande oorkruis geplaas met sy regterhand op Efraim, die jongste broer, se kop. Sy linkerhand het hy op Manasse, die oudste, gesit. Jakob het Josef toe geseën: “Mag die God vir wie Abraham en Isak baie lief was, naby aan hierdie twee seuns wees. En mag die God wat altyd by my was en my in alles gehelp het, julle gelukkig maak. “Mag die God wat my altyd uit alle gevare gered het, by julle wees. Mag my naam en die geloof van Abraham en Isak in hierdie twee seuns voortleef. Mag hulle baie kinders en ’n groot nageslag hê.” Josef was omgekrap toe hy sien sy pa het sy regterhand op Efraim se kop gesit. Hy het sy pa se hand gevat, dit op Manasse se kop gesit en toe gesê: “Nee, Pa, nie so nie. Manasse is mos die oudste. Sit nou Pa se hand op sy kop.” Halfkwaad het Jakob gesê: “Ek weet, my seun, ek weet wat ek doen. Manasse se kinders sal inderdaad ’n groot nasie word, maar Efraim, sy jonger broer, sal die grootste wees en sy nageslag die belangrikste, ’n groot nasie.” Met hierdie woorde het Jakob sy kleinseuns geseën. “Omdat dit met julle twee goed sal gaan,” het hy verder gesê, “sal dit ook met die hele Israel goed gaan. As mense mekaar groet, sal hulle sê: ‘Ek hoop dit gaan met jou so goed soos met Efraim en Manasse.’” Jakob het Efraim belangriker geag as Manasse. Jakob het toe na Josef toe gedraai en gesê: “Soos jy sien, is ek besig om te sterf. Moenie bang wees nie, want die Here is met jou. Eendag sal Hy jou na die land van jou eie mense terugneem. Ek gee Sigem vir jou. Dit is die plek wat ek destyds nog met swaard en boog van die Amoriete afgeneem het. Dit sal joune wees en joune alleen.” Jakob het al sy seuns laat kom en vir hulle gesê: “Kom staan hier om my. Ek wil iets oor elkeen van julle en julle toekoms sê. “Kom, Jakob se kinders, staan nader en luister goed. Luister mooi na julle pa, Israel. Ruben, jy is nou wel my eersgeborene, my steunpilaar en my eerstelingseun. Jy moes die vernaamste en die belangrikste onder jou broers gewees het. Jy is egter soos ’n waterstroom wat sy eie pad loop. Jy sal nie meer die belangrikste wees nie, want jy het by Bilha, my byvrou, geslaap en my diep seergemaak. “Simeon en Levi is broers. Hulle is mans van geweld en hulle doen die allerverskriklikste dinge. Met hulle geheime planne wil ek niks te doen hê nie. Ek wil nie deel van hulle vergaderings en grootpratery wees nie. In hulle verskriklike woede maak hulle mense dood en maak hulle diere moedswillig kreupel. Dit sal sleg met hulle gaan omdat hulle woede geen perke ken nie, omdat hulle wrede dinge aanvang. Ek sal hulle sonder enige grond tussen die ander stamme laat woon. “Juda, al jou broers sal jou eer. Jou vyande sal jou onderdanig wees. Jou broers sal in respek voor jou buig. Juda is soos ’n jong leeu, hy vernietig sy prooi en keer na sy lêplek terug. Soos ’n leeu krul hy hom in sy blyplek op en niemand sal dit naby sy skuilplek waag nie. Juda sal nog koning word en sy koningskap sal eeue lank duur. Uit jou sal iemand kom wat regeer. Van oral sal die volke kom om in eerbied voor hom te buig en hom te eer. Juda sal altyd volop hê. Aan sy wingerde sal die groot, ryp trosse swaar hang. Sy donkies sal sommer van die beste druiwe staan en eet en sy klere sal hy in rooi wyn was. Sy mooi oë sal donkerder as wyn wees en sy tande wit van al die melk. “Sebulon sal langs die see bly. Sy strand sal ’n hawe vir baie skepe wees en sy gebied sal tot by Sidon strek. “Issaskar is soos ’n donkie wat ’n lekker lêplek soek en hom by die skape se voerbak uitstrek. Vir Issaskar is sy woongebied mooi, ’n goeie plek om in te woon. Daarom het hy baie hard gewerk. Soos ’n slaaf het hy elke dag gewerk. “Dan sal ’n goeie leier vir sy mense wees en sy stam net so belangrik soos al die ander stamme. Mag Dan soos ’n slang by die grootpad wees wat die vyand se perde in die hakskeen byt sodat die ruiter agteroor val.” Op hierdie stadium het Jakob ’n skietgebed opgesê: “Here, ek wag dat U my kom red.” Toe het hy weer verder gegaan. “’n Bende rowers sal Gad aanval, maar hy sal hulle oorwin en agternasit. “Aser se land is vrugbaar en sy oeste ryk. Selfs ’n koning kan van sy lekkernye eet. “Naftali is soos ’n takbok, wild en vry, en sy lammetjies mooi. “Josef is ’n vrugbare boom wat by die fontein groei. Sy takke groei oor die muur. Sy vyande het hom met alle mag aangeval en hom met hulle pyle en boë agtervolg. Daar het egter niks van gekom nie, want hulle boë was te styf en hulle arms te bewerig. Jakob se sterk God het Josef bewaar. Israel se Herder en Beskermer was heeltyd by Josef. Josef, dit is my God wat jou so help. Dit is die almagtige God wat jou seën sodat dit altyd by jou sal reën, sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees en sodat jou vee en kinders sal vermeerder. Josef, jy sal die goeie dinge van die lewe ontvang: goeie koringoeste en groen weivelde, ryp gesaaides soos in die ou tyd, mooi en vrugbare heuwels. Mag al hierdie woorde waar word, want Josef is anders as sy broers en hy sal hulle lei. “Benjamin is soos ’n woedende wolf. In die môre vang hy sy prooi en in die aand deel hy dit met almal.” Dit was Jakob se laaste woorde aan sy seuns, die latere twaalf stamme van Israel. Op dié manier het hy elke seun van hom gegroet en geseën. Jakob het vir oulaas met al die seuns gepraat. “Ek is besig om te sterf,” het hy gesê. “As ek dood is, moet julle my by my mense in die familiegraf by Magpela, net oos van Mamre in die land Kanaän begrawe. Abraham het dit destyds van Efron, die Hetiet, gekoop omdat hy dit as ’n begraafplek wou gebruik het. “Abraham is daar begrawe en ook sy vrou Sara. Isak en sy vrou, Rebekka, lê ook daar en dit is ook die plek waar ek Lea begrawe het. “Julle weet mos waar dit is. Dit is die grot wat Abraham vroeër van Efron, die Hetiet gekoop het. Nou vra ek mooi dat julle my ook daar sal begrawe.” Toe Jakob klaar gepraat het, het hy weer gaan lê en die laaste asem uitgeblaas. Josef het op sy pa gaan lê en terwyl hy huil, het hy Jakob se gesig gesoen. Josef het toe beveel dat sy pa se liggaam gebalsem moet word. Dit het 40 dae geduur. Dit was maar die normale tyd wat dit in Egipte geduur het om ’n liggaam te balsem. Al die Egiptenaars het 70 dae oor Jakob gerou. Na die routyd het Josef vir die koning se amptenare gesê: “As julle van my hou, gaan sê vir die koning my pa het voor sy dood my laat belowe dat ek hom in die familiegraf in Kanaän moet gaan begrawe. Ek vra die koning se toestemming om my pa in Kanaän te begrawe. Ek sal dadelik ná die begrafnis terugkom.” Die koning het geantwoord: “Gaan begrawe jou pa, want jy het hom jou woord gegee.” So is Josef daar weg. Al die koning se amptenare, al die senior persone in sy diens en al die leiers in Egipte is saam met Josef Kanaän toe. Josef se eie familie, sy broers en al sy pa se mense het saamgegaan. Slegs die klein kindertjies en die ou mense, asook die skape en bokke, het in die land Gosen agtergebly. Baie ruiters op oorlogswaens en perde het saam met Josef-hulle gegaan. Dit was ’n groot en ’n indrukwekkende groep mense. Toe hulle by Atad aan die oostekant van die Jordaan kom, het hulle eers gestop. Almal het bymekaargekom en weer lank oor Jakob gehuil en gerou. Hulle het sewe dae lank daar gebly en oor Jakob se lewe nagedink en oor hom gerou. Toe die mense van Kanaän sien wat by Atad gebeur, het hulle gesê: “Hoe aangrypend het die Egiptenaars tog nie sewe dae lank oor Jakob gerou nie!” Toe het die mense besluit om die plek se naam na Abel-Misrajim te verander. Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa hulle gevra het: hulle het sy liggaam Kanaän toe gebring en dit neergelê in die grot van Magpela, oos van Mamre, op die stuk grond wat Abraham nog van Efron, die Hetiet, as grafgrond gekoop het. Na die begrafnis is Josef, sy broers en almal wat saam met hom vir die begrafnis Kanaän toe is, weer terug Egipte toe. Na Jakob se dood het die lewe weer sy gewone gang gegaan. Josef se broers was egter onrustig en het vir mekaar gesê: “Sê nou Josef haat ons en hy wil ons terugkry vir alles wat ons aan hom gedoen het?” Hulle besluit toe om ’n boodskap vir Josef te stuur. “Voor sy dood,” so het die boodskap begin, “het Pa gesê ons moet die saak met jou regmaak. Soos jy weet, staan ons voor jou en Pa se God skuldig. Maar nou, Josef, vra ons jou mooi om ons daardie dag se verskriklike daad te vergewe.” Josef het begin huil toe hy die boodskap hoor. Die broers is self na Josef toe en het laag voor hom gebuig en vir hom gesê: “Hier is ons. Ons sal jou slawe wees.” Josef het gesê: “Moet tog nie bang wees nie. Ek is mos nie God nie. Julle het ’n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. Baie mense leef vandag en het kos omdat julle my daardie dag verkoop het. Julle hoef regtig niks te vrees nie. Tot die einde toe sal ek vir julle en julle kinders sorg.” Josef se woorde was vol deernis en sy liefde teenoor sy broers het hulle getroos en bemoedig. Josef en sy familie het in Egipte bly woon. Hy was 110 jaar oud toe hy dood is. Hy het lank genoeg geleef om Efraim se kinders en sy kleinkinders te sien grootword. En terwyl hy nog geleef het, is al die kinders van Manasse se seun, Magir, gebore. Toe hy die dood voel nader kom, het Josef vir sy broers gesê: “Binnekort is ek nie meer hier nie, maar moenie bang wees nie, want God sal self vir julle sorg. Eendag sal Hy julle nog uit hierdie land lei en na die land toe neem wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.” Toe het Josef vir sy broers iets groots gevra. “Belowe my,” so het hy begin, “dat julle my liggaam sal saamvat wanneer God julle uit hierdie land uitlei.” So het Josef dan in Egipte gewoon en gesterf toe hy 110 jaar oud was. Hulle het sy liggaam gebalsem en in ’n kis gesit. Die name van die leiers van die verskillende groot families in Israel en die hoofde van hulle gesinne wat saam met Jakob na Egipte toe getrek het, was die volgende: Ruben, Simeon, Levi en Juda, Issaskar, Sebulon en Benjamin, Dan en Naftali, Gad en Aser. Josef was reeds in Egipte. Jakob se afstammelinge was 70 altesaam. Die hele groep van Josef en sy broers is met verloop van tyd die een na die ander dood. Die Israeliete het baie kinders gehad en het net al meer geword. Daar was naderhand so baie van hulle dat hulle oor die hele Egipte gaan bly het. In ’n stadium het daar ’n nuwe koning in Egipte gekom. Hy het niks geweet van Josef en alles wat in sy tyd gebeur het nie. Hy het vir die mense onder hom gesê: “Kyk ’n bietjie; die Israeliete is besig om meer as ons te word. Hulle raak ook sterker as ons. Ons sal ’n plan moet uitdink om te keer dat hulle nog meer word. As daar oorlog uitbreek, kan hulle by die vyand aansluit. Hulle kan dan van oral uit die land optrek en teen ons begin veg.” Die farao het toe manne oor die Israeliete aangestel wat hulle gedwing het om die werk te doen wat onbetaalde slawe doen. Die farao, soos die koning van Egipte genoem is, het die Israeliete gebruik om vir hom die twee stede Pitom en Rameses te bou waar hy voorrade kon wegbêre. Die plan het egter geboemerang. Hoe swaarder die farao hulle laat werk het, hoe meer het die Israeliete geword en op al meer plekke gaan bly. Dit het die Egiptenaars net al hoe banger vir die Israeliete laat word. Die Egiptenaars het die Israeliete hardhandig begin behandel en die lewe vir hulle bitter swaar gemaak. Hulle het die Israeliete gedwing om die swaar slawewerk te doen. Hulle moes klei uitgrawe en daarvan bakstene maak, bouklippe kap en op die landerye werk. Die koning van Egipte het Sifra en Pua, die Hebreërs se kraamverpleegsters, probeer dwing om iets leliks te doen. Hy wou hê hulle moes daarvoor sorg dat die seuntjies van die Hebreërs se vroue nie bly lewe nie. Wanneer hulle die vroue help om hulle kinders in die wêreld te bring, moes hulle die seuntjies laat doodgaan. As dit dogtertjies was, kon hulle bly lewe. Omdat hierdie twee verpleegsters respek vir God gehad het, het hulle nie gedoen wat die farao gesê het nie. Hulle het die seuntjies ook laat bly lewe. Die koning het toe die twee vroue laat kom. Hy vra vir hulle: “Nou hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” Die verpleegsters het die farao geantwoord: “Omdat die Hebreeuse vroue nie so sukkel soos die Egiptiese vroue nie. Teen die tyd dat die verpleegster by hulle kom om hulle te help is die babatjie al klaar gebore en dan kan ons niks daaraan doen nie.” Die Israeliete het op dié manier net al meer en al sterker geword. Die verpleegsters het respek vir God gehad. Daarom was Hy goed vir hulle en het hulle ook kinders laat kry. Die farao het toe al die Egiptenaars beveel om alle pasgebore Israelitiese seuntjies in die Nyl te gooi. Hulle moes die dogtertjies egter laat bly lewe. ’n Man uit Levi se nageslag het met ’n vrou uit dieselfde groep getrou. Sy het verwag en ’n seuntjie gekry. Toe sy sien hoe mooi die baba is, het sy hom drie maande lank vir die Egiptenaars weggesteek. Toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n gevlegte mandjie gemaak om in te lê. Sy het dit met pik waterdig gemaak en die seuntjie daarin neergesit. Toe het sy die mandjie tussen die riete aan die kant van die Nyl gaan sit. Sy sussie moes die mandjie oppas en op ’n afstand dophou om te kyk dat daar nie iets met hom gebeur nie. Een van die farao se dogters het in die Nyl gaan bad. Die meisies wat haar elke dag help, het op die wal van die rivier bly staan terwyl sy swem. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en een van die meisies gestuur om dit vir haar te gaan uithaal. Toe sy dit oopmaak, sien sy dat daar ’n babaseuntjie in is wat huil. Haar hart het sag geword en sy het vir haarself gesê: “Siestog, dis seker een van die Hebreërs se seuntjies.” Sy sussie kom toe nader en vra vir die farao se dogter: “Kan ek maar iemand by die Hebreërs vir u gaan haal wat die babatjie kan laat drink en hom vir u kan oppas?” Die farao se dogter antwoord haar: “Asseblief, ja. Gaan haal haar.” Die meisie het toe haar ma gaan haal. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Vat hierdie babatjie en laat hom aan jou drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy ma het hom toe gevat en vir hom gesorg. Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.” Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?” Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.” Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom. Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.” Hy vra toe vir sy dogters: “En waar is die man dan nou? Hoe is dit dan dat julle die man net so daar los? Gaan roep hom dat hy saam met ons kan kom eet.” Moses was bereid om by die man te bly. Die man het ook later ingestem dat hy met sy dogter Sippora kon trou. Sippora het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Dit beteken “vreemdeling”, want Moses het gesê: “Ek leef as vreemdeling in ’n vreemde land.” Na ’n hele tyd is daardie koning van Egipte dood. Die Israeliete het nog al die tyd bly sug en kreun omdat hulle sulke harde werk moes doen. Hulle het so hard gekla dat die Here dit selfs in die hemel gehoor het. God het onthou dat Hy met Abraham, Isak en Jakob ’n ooreenkoms gehad het. Hy het gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy het geweet hoe swaar hulle kry. Moses het sy skoonpa, Jetro, se vee opgepas. Jetro was die man in Midian wat vir die Here gewerk het. Moses het toe met sy skoonpa se vee al dieper die woestyn in getrek. Hy het naderhand by God se berg uitgekom. Dit is die berg Horeb. Daar het hy ’n man gesien wat van God uit die hemel kom. Die man het binne-in ’n vuurvlam gestaan wat lyk of dit in ’n doringbos brand. Alhoewel dit gelyk het of die bos besig was om af te brand, het dit glad nie uitgebrand nie. Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.” Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk. Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry. Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly. Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel. Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.” Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?” Die Here antwoord hom: “Ek self sal saam met jou gaan. Wanneer jy die volk uit Egipte uitgelei het en hulle kom aanbid My by hierdie berg, sal dit die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.” Moses het vir God gesê: “Wanneer ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle dadelik vir my vra: ‘En wie is Hy nou?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” “Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.” God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.” “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers, die God van Abraham en Isak en Jakob, by die doringbos ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek het goed na julle probleem gekyk. Ek het gesien wat daar alles met julle in Egipte gedoen word. Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’ Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê. “Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’ Ek weet goed dat die Egiptiese koning julle nie toestemming sal gee om te gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. Daarom sal Ek ingryp en allerhande verskriklike dinge in die land laat gebeur. Eers nadat dit klaar gebeur het, sal hy instem om julle te laat gaan. Ek sal ook die houding van die Egiptenaars teenoor julle verander. Wanneer julle eendag uit die land wegtrek, moet julle nie sonder geskenke weggaan nie. Elke vrou moet haar buurvrou en die mense om haar wat van ander plekke kom, dwing om vir haar silwer en goue juweliersware en klere te gee. Julle moet dit vir julle kinders aantrek. So moet julle hulle terugkry vir wat hulle aan julle gedoen het. Julle moet Egipte kaal uittrek.” Moses vra toe vir die Here: “Wat gebeur as hulle my nie glo nie en nie aanvaar wat ek sê nie? Wat gebeur as hulle sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie’?” Die Here vra hom toe: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “Dis ’n stok.” Die Here sê toe: “Gooi dit op die grond neer.” Toe Moses dit op die grond gooi, verander dit in ’n slang. Moses wou weghardloop, maar die Here sê vir hom: “Vang die slang aan sy stert.” Toe Moses die slang aan die stert gryp, het dit weer ’n stok in sy hand geword. Die Here sê: “Hierdie teken sal hulle oortuig dat jy regtig die Here, die God van hulle voorouers, die God van Abraham, Isak en Jakob, ontmoet het.” Die Here het vir Moses ook nog ’n tweede teken gegee. Hy het vir hom gesê: “Steek jou hand in jou klere.” Hy het dit gedoen. Toe hy sy hand uithaal, was dit vol spierwit sere. Die Here sê toe: “Steek weer jou hand in jou klere.” Toe hy dit doen en sy hand weer uittrek, was sy vel soos dit voor die tyd was. Die Here sê toe: “As die eerste teken hulle nie oortuig om jou woord te aanvaar nie, sal hierdie tweede teken dit doen. As hulle selfs na die tweede teken weier om jou te glo en nog steeds nie jou woord wil aanvaar nie, moet jy water uit die Nyl skep en dit op die droë grond uitgooi. Dit sal op die grond in bloed verander.” “Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.” “Wie,” vra die Here hom toe, “dink jy maak dit vir mense moontlik om te praat? Wat maak dat party mense stom en ander doof is, dat party blind is en ander weer kan sien? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.” “Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien. Beduie vir hom wat hy moet sê. Ek sal julle help om te praat en Ek sal vir julle wys wat julle moet doen. Hy sal in jou plek met die volk praat. Hy sal vir hulle sê wat jy wil hê hulle moet hoor. Hou hierdie stok by jou dat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek vir jou gewys het om die volk te oorreed.” Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.” “Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.” Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.” Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’” Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak. Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.” Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan. Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen. Moses vertel toe vir Aäron alles, van hoe die Here hom gestuur het en die wondertekens wat Hy hom gegee het om te doen. Moses en Aäron het toe gegaan en die leiers van Israel bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle al die dinge verduidelik wat die Here vir Moses gesê het. Moses het die wondertekens vir hulle gedoen. Die volk het hulle toe geglo. Toe hulle hoor dat die Here die Israeliete gaan help omdat Hy hulle nood raakgesien het, het hulle op hulle knieë geval en tot die Here gebid. Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Die Here is die God van Israel. Die Here sê vir jou: ‘Jy moet my volk toelaat om na die woestyn toe te gaan om daar vir My ’n fees te gaan hou.’” Die farao antwoord toe: “En wie is hierdie ‘Here’ altemit dat ek na Hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken Hom van geen kant nie. Ek gaan Israel nie toelaat om weg te gaan nie.” Hulle sê toe weer: “Die God van die Hebreërs het met ons gepraat. Gee tog vir ons kans om drie dae lank weg te gaan. Ons wil in die woestyn vir die Here ons God gaan offer. As ons dit nie doen nie, sal Hy ons met siektes en met die dood straf.” Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, vir wat hou julle die mense van hulle werk af? Loop, gaan aan met julle werk! Kyk hoe baie mense is julle volk al in die land. Verbeel jou, nou moet hulle nog hulle werk laat staan om te gaan feesvier!” Nog daardie selfde dag het die farao vir die mense gesê wat hy oor die volk aangestel het om hulle die harde werk te laat doen: “Julle moenie langer strooi vir die volk gee om bakstene mee te maak nie. Van nou af moet hulle self strooi gaan soek. Maar hulle moet nog steeds elke dag net soveel stene maak soos tevore. Julle mag nie toelaat dat hulle minder maak nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle met hierdie storie kom dat hulle hul God wil gaan aanbid. Maak die werk vir die mense nog moeiliker. Hulle moet te besig wees om nog sulke slimstories uit te dink.” Die manne wat oor hulle aangestel was, het toe vir die volk gaan sê wat die farao besluit het. “Ons gaan nie langer vir julle strooi gee om stene te maak nie. Van nou af sal julle dit self moet loop soek. Dis julle saak waar julle dit in die hande gaan kry. Maar julle moet elke dag nog net soveel stene maak soos julle altyd gemaak het.” Van toe af moes die volk oor die hele Egipte gaan soek waar hulle grasstoppels in die hande kon kry. Hulle moes dit in die plek van strooi gebruik om die stene te maak. Die manne wat oor hulle aangestel was, het dit vir hulle baie moeilik gemaak. Hulle het die volk gedwing om net soveel stene te maak soos voorheen toe hulle die strooi by die Egiptenaars gekry het. Die farao het selfs die manne wat oor hulle aangestel is, laat slaan en hulle beskuldig dat hulle nie sorg dat daar net soveel stene soos altyd gemaak word nie. Hierdie manne het toe by die farao gaan kla: “Hoekom maak u nou so met u werkers? Ons en die mense wat die stene maak, kry nie meer strooi vir die werk nie. Maar u verwag dat ons nog net soveel stene moet maak soos voorheen. Die mense wat oor die werk toesig hou, word selfs geslaan. Intussen lê die skuld by u eie mense.” Hy het vir hulle gesê: “Julle is net lui. Julle wil nie werk nie, en daarom kom julle met hierdie storie van ‘ons wil vir die Here gaan offer’. Gaan loop doen julle werk. Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle net soveel stene maak soos altyd.” Die manne wat oor die volk aangestel was, het toe besef dat hulle in ’n groot gemors beland het. Daar was nie ’n manier om daaruit te kom nie. Hulle sou maar moes sorg dat daar elke dag net soveel stene gemaak word soos vantevore. Toe hulle van die farao af weggaan, kry hulle vir Moses en Aäron wat vir hulle gestaan en wag het. Hulle sê toe vir Moses en Aäron: “Die Here sien wat julle aangevang het. Mag Hy julle straf omdat julle ons name so deur die modder gesleep het by die farao en sy mense. Julle het ons nou in hulle hande uitgelewer. Hulle kan met ons maak net wat hulle wil.” Moses het toe na die Here teruggegaan en by Hom gekla: “Ag, Here, hoekom maak U nou so lelik met die volk? Hoekom het U my na die farao toe gestuur? Van die oomblik af dat ek vir hom gaan sê het wat U wil hê hy moet doen, het hy ons volk net al slegter behandel. U het nog niks gedoen om u volk te red nie.” Maar die Here het vir Moses gesê: “Wag ’n bietjie en kyk wat Ek met die farao gaan maak. Ek gaan hom nie net oorreed om my volk te laat trek nie, maar Ek gaan hom selfs so ver kry dat hy hulle uit sy land sal wegjaag.” Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Ek is die Here. Abraham, Isak en Jakob het gesê Ek is die God wat vreeslik sterk is. Hulle het My die Almagtige genoem. Hulle het My nie ‘die Here’ genoem nie. Ek het ook met hulle ’n ooreenkoms gesluit. Ek het hulle belowe om die land Kanaän, waarin hulle net vir ’n tydjie oorgebly het, uiteindelik vir hulle te gee as hulle eie land. “Ek het ook gehoor hoe die Israeliete kla omdat hulle in Egipte slawewerk moet doen. Ek het onthou dat Ek ’n ooreenkoms met hulle gemaak het. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle wegvat uit Egipte waar julle gedwing word om sonder betaling vir ander te werk. Ek sal julle vrymaak van dié slawewerk. Ek sal julle met groot krag en met wonderlike dinge van julle swaarkry verlos. Ek maak julle my eie volk. Ek is julle God. Julle sal weet en erken dat Ek die Here julle God is wanneer Ek julle die dag wegvat uit Egipte waar julle vir ander moet werk. Ek sal julle bring by die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dié land julle eie land maak. Ek is die Here.’” Moses het al hierdie dinge net so vir die Israeliete gaan vertel. Hulle was egter te moeg en moedeloos van al die harde werk om nog na hom te luister. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê: “Gaan sê weer vir die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.” Moses het egter reguit vir die Here gesê: “Hoe op aarde sal die farao na my luister as die Israeliete nie eens hoor wat ek sê nie? Ek kan nie baie goed praat nie.” Die Here het nogtans weer ’n keer met Moses en Aäron gepraat en hulle weer na die Israeliete en na die koning van Egipte, die farao, toe gestuur om te eis dat hy die Israeliete uit Egipte moet laat wegtrek. Hier volg nou ’n lys van die leiers van die verskillende groot families in Israel: Ruben was Jakob se oudste seun. Sy seuns was Ganok en Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se afstammelinge. Die seuns van Simeon was: Jemuel en Jamin, Ohad, Jakin en Sogar. Simeon en sy Kanaänitiese vrou het ook ’n seun Saul gehad. Hulle was die leiers van Simeon se groep. Levi se seuns, van die oudste tot die jongste, was Gerson en Kehat en Merari. Levi self het 137 jaar oud geword. Gerson se seuns was Libni en Simi. Hulle afstammelinge het uit twee familiegroepe bestaan. Kehat se seuns was: Amram en Jishar en Hebron en Ussiël. Kehat self het 133 jaar oud geword. Merari se seuns was Magli en Musi. Al die afstammelinge van Levi het aan hierdie familiegroepe behoort. Amram het met Jogebed getrou. Sy was sy pa se suster, dit wil sê sy tannie. Hulle het twee seuns gehad: Aäron en Moses. Amram het 137 jaar oud geword. Jishar se seuns was Korag en Nefeg en Sikri. Ussiël se seuns was Misael en Elisafan en Sitri. Aäron het met Eliseba, ’n dogter van Amminadab, die suster van Nagson, getrou. Hulle seuns was Nadab en Abihu en Eleasar en Itamar. Korag se seuns was Assir en Elkana en Abiasaf. Hulle is onder die afstammelinge van Korag ingedeel. Eleasar, Aäron se seun, het met ’n dogter van Putiël getrou. Hulle het ’n seun, Pinehas, gehad. Dit was die verskillende leiers uit die familie van Levi. Dit is hierdie Aäron en Moses vir wie die Here gesê het dat hulle die Israeliete volgens hulle families bymekaar moes maak om hulle uit Egipte weg te lei. Dit was hulle twee, hierdie Moses en Aäron, wat met die Egiptiese koning, die farao, gaan onderhandel het om al die Israeliete uit Egipte te laat wegtrek. Die dag toe die Here met Moses in Egipte gepraat het, het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Jy moet vir die farao, die koning wat oor Egipte regeer, alles gaan sê wat Ek vir jou gesê het.” Moses het toe weer ’n keer baie duidelik vir die Here gesê: “Regtig, ek praat baie swaar. Hoe sal die farao ooit tog na my luister?” Die Here sê toe vir Moses: “Let op, Ek gaan jou soos ’n god vir die farao maak. Jou broer Aäron sal soos iemand maak wat God se boodskap vir mense bring. Hy sal jou woorde vir die farao gaan oordra. Alles wat Ek jou beveel het, moet jy vir jou broer Aäron sê. Hy kan dit weer vir die farao sê sodat hy die Israeliete uit sy land kan wegstuur. Maar Ek gaan die farao hardkoppig maak. Ek sal dan baie goeie rede hê om tekens en wonders in Egipte te doen. Selfs dan nog sal die farao aanhou weier om na julle te luister. Ek sal dan reg wees wanneer Ek op Egipte afstorm en groot rampe oor hulle bring. In dieselfde tyd sal Ek al die families van Israel uit Egipte wegvat. Wanneer Ek Egipte gryp en die Israeliete onder hulle laat wegtrek, sal Egipte agterkom wie Ek, die Here, werklik is.” Moses en Aäron het presies net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Die tyd toe hulle met die farao gaan praat het, was Moses alreeds 80 jaar oud en Aäron 83. Die Here sê toe vir Moses en Aäron: “Wanneer die farao vra dat julle iets moet doen wat vir hom kan bewys dat julle van God af kom, moet jy vir Aäron sê om sy kierie te vat en dit voor die farao op die grond neer te gooi. Dit sal dan in ’n slang verander.” Moses en Aäron het toe by die farao aangekom en presies net so gemaak soos die Here gesê het. Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi. Dit het in ’n slang verander. Die farao laat toe sy towenaars kom. Hulle doen toe presies dieselfde ding. Soos hulle elkeen sy kierie op die grond neergooi, verander dit in ’n slang. Aäron se kierie het egter hulle slange ingesluk. Die farao het nogtans hardkoppig gebly, soos die Here gesê het dit sou gebeur. Hy het geweier om na Moses-hulle te luister. Die Here sê toe vir Moses: “Die farao is hardekwas. Hy bly weier om die volk weg te stuur. Jy moet môreoggend vroeg vir hom langs die Nyl gaan wag. Sorg dat jy die kierie wat in ’n slang verander het by jou het. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na jou toe gestuur. Hy sê jy moet sy volk toelaat om na die woestyn toe te gaan dat hulle daar tot Hom kan gaan bid. Tot nou toe het jy geweier om na hierdie opdrag te luister. Die Here gaan jou nou dwing om te erken dat Hy die Here is. Ek gaan met hierdie kierie in my hand op die rivier se water slaan. Die water gaan dan in bloed verander. Die visse in die rivier sal almal vrek. Dit sal so stink dat niemand in Egipte water uit die rivier sal kan drink nie.’” Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê om sy kierie te vat en dit uit te steek na al die plekke waar daar water in Egipte is. Hy moet dit uitsteek na die spruite, na die riviere, na die vleilande en na die damme. Al die water in die land sal dan in bloed verander. Selfs ook die water wat in emmers geskep is en in bakke is, sal in bloed verander. Moses en Aäron het toe net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Terwyl die farao en sy amptenare staan en kyk, het Moses sy kierie gevat en op die water by die rivier geslaan. Al die water in die rivier het in bloed verander. Die vis in die rivier het gevrek. Die rivier het so sleg begin ruik dat niemand in Egipte die water van die rivier kon drink nie. Oor die hele land was daar net bloed. Die Egiptiese towenaars kon dieselfde doen met hulle kunsies. Al wat gebeur het, was dat die farao hom net verder teëgesit het en geweier het om na hulle te luister. Dit was mos soos die Here gesê het dit sal gebeur. Die farao het toe die rug vir hulle gedraai en teruggegaan huis toe. Hy het hom glad nie verder gesteur aan wat daar gebeur het nie. Die Egiptenaars het toe waterputte al langs die Nyl gegrawe omdat niemand die water van die rivier kon drink nie. Die ramp waarmee die Here die rivier getref het, het sewe dae lank aangehou. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en gaan sê vir hom: ‘Die Here dring daarop aan dat jy sy volk moet toelaat om tot Hom te gaan bid. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek paddas oor jou hele land laat kom. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uit die rivier kom en tot in jou huis inkom. Hulle sal in jou slaapkamer inkom en bo-op jou bed spring. Hulle sal in die mense wat vir jou werk se huise inkom en in die huise van jou hele volk. Hulle sal selfs in jou bakoonde en jou broodpanne gaan sit. Die paddas sal net te veel wees vir jou en jou volk.’” Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron sy kierie uitsteek na die spruite toe, die riviere en die moerasse sodat die paddas kan uitkom uit die water en oor die hele Egipte kan kom.” Toe Aäron sy kierie uitsteek na al die plekke waar daar water in Egipte is, het die paddas uitgekom en oor die hele land versprei. Die Egiptiese towenaars kon dieselfde ding regkry met hulle kunsies. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom. Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Smeek tog die Here dat Hy die paddas van my en my mense moet wegvat. Ek sal die volk laat gaan sodat hulle vir die Here kan gaan offer.” Moses het die farao sarkasties geantwoord: “En wanneer sal dit u nogal pas dat ek sal bid dat die paddas van u en u dienaars en u volk en uit u huise weggevat sal word en net by die rivier sal bly?” “Môre sal vir my reg wees,” het hy geantwoord. Moses sê toe: “Goed, ek sal maak soos u vra. U sal dan besef dat daar niemand anders is soos die Here ons God nie. Die paddas sal van u, u huis, u werkers en u volk af weggaan en weer in die rivier gaan bly.” Moses en Aäron is toe weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die paddas waarmee Hy die farao gestraf het. Die Here het gedoen wat Moses vir die farao belowe het. Die paddas in die huise en buite in die veld het gevrek. Die mense het hulle by die hope bymekaargemaak. ’n Doodsreuk het oor die hele land gehang. Toe die farao egter sien dat die krisis verby is, het hy weer moedswillig geraak. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy belowe het hulle kon gaan. Dit was inderdaad mos soos die Here gesê het dit sou gebeur. Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron met sy kierie in die stof op die grond slaan. Die stof sal dan muggies word wat oor die hele land versprei.” Hulle het toe so gemaak. Toe Aäron sy kierie oplig en in die stof slaan, het daar muggies op mens en dier toegesak. Dit het gelyk of elke krieseltjie stof in Egipte ’n muggie geword het. Die towenaars het ook probeer om met hulle kunsies muggies uit die grond te laat kom. Hulle kon dit egter nie regkry nie. Die muggies was vir mens en dier ’n verpesting. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao se kop het net al harder geword en hy het bly weier om na Moses-hulle te luister. Hy het presies opgetree soos God gesê het dit sou gebeur. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vir die farao gaan wag wanneer hy na die water toe kom. Jy moet weer vir hom sê dat die Here van hom eis: ‘Laat my volk toe om te gaan en My te aanbid. As jy nie my volk toelaat om te gaan nie, sal Ek swerms vlieë op jou en jou amptenare en jou volk en julle huise loslaat. In die huise van Egipte en oral in die land sal dit wemel van die vlieë. Ek sal egter ’n uitsondering maak van Gosen, waar my volk woon. Daar sal nie vlieë wees nie. Jy sal dan weet dat Ek, die Here, baas is oor hierdie land en daarmee kan maak soos Ek wil. Ek sal my mense anders behandel as jou mense. Hierdie ding sal môre gebeur.’” Die Here het toe gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao en sy mense se huise gekom en ook oor die hele land. Die hele land is in chaos gedompel deur die vlieëplaag. Die farao het Moses en Aäron toe laat roep: “Goed, julle kan vir julle God gaan offer, maar dit moet hier in dié land wees.” “Ons kan dit nie hier doen nie,” het Moses hom geantwoord. “Die offers wat ons vir die Here ons God bring, is grillerig vir die mense van Egipte. As ons hier offer waar die Egiptenaars ons kan sien, sal dit vir hulle so gruwelik wees dat hulle ons met klippe sal doodgooi. Gee eerder vir ons drie dae om in die woestyn in te gaan. Ons wil daar gaan offer vir die Here ons God, op die manier wat Hy vir ons voorgeskryf het.” “Goed,” sê die farao toe, “ek sal julle toelaat om in die woestyn vir die Here julle God te gaan offer. Julle mag net nie baie ver in die woestyn ingaan nie. Bid ook sommer dat hierdie plaag kan ophou.” Moses sê toe: “Wanneer ek van hier af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die vlieë môre van u en u amptenare en u volk moet padgee. U moet net nie weer met ons speletjies probeer speel en daarna weier dat die volk kan gaan om vir die Here te offer nie.” Moses is toe weg van die farao af en het tot die Here gebid om die vlieë weg te vat. Die Here het dan ook gemaak soos Moses belowe het: Hy het die vlieë van die farao en sy amptenare en sy volk af laat padgee. Daar het nie eens een oorgebly nie. Die farao het egter weereens moedswillig geraak en sy woord verbreek. Hy het weer ’n keer geweier om die volk te laat gaan. Die Here het weer vir Moses gesê: “Gaan nog ’n keer na die farao toe en sê vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, eis van jou: jy moet my volk laat gaan om My te aanbid. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou, gaan die Here sy krag gebruik. Hy sal ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al jou vee wat in die veld is. Al jou perde en donkies, jou kamele, jou beeste en jou kleinvee sal dodelik siek word. Die Here sal ook anders maak met die vee van die Israeliete as met die vee van die Egiptenaars. Nie een van hulle diere sal vrek van die siekte nie. Die Here het hierdie keer self oor die tyd besluit wanneer dit sal gebeur. Dit sal môre gebeur.’” Die Here het dan ook die volgende dag laat gebeur wat Hy gesê het. Al die vee van die Egiptenaars het siek geword en begin vrek. Onder die Israeliete se vee is daar egter nie ’n enkele een dood nie. Die farao het ook mense gestuur om te kyk of dit regtig so is dat daar niks by die Israeliete gevrek het nie. Alhoewel hulle vir hom kom sê het dat dit werklik so is, het hy weer viervoet vasgesteek en bly weier om die volk te laat gaan. Die Here het daarop vir Moses en Aäron beveel: “Gaan krap ’n paar hande vol roet uit ’n oond. Moses moet dit voor die farao in die lug uitstrooi. Dit sal ’n fyn poeier word wat oor die hele Egipte versprei. Dit sal oor die hele land rou sere op mense en diere laat kom.” Hulle het toe roet gevat. Terwyl die farao kyk wat hy doen, het Moses die roet gevat en in die lug gegooi. Daar het toe swere op die mense en die diere se vel gekom. Die Egiptiese towenaars was self so vol sere dat hulle nie eens kon kom kyk of hulle dieselfde as Moses kon doen nie. Die hele Egipte was die ene rowe en sere. Die Here het die farao egter net nog meer hardkoppig laat word. Hy het al minder na hulle geluister. Dit is mos soos die Here gesê het dit sou wees. Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vra of jy met die farao kan praat. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het van jou geëis: jy moet my volk laat gaan om My te gaan aanbid. Hierdie keer gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en die mense wat by jou koninklike paleis werk en jou hele volk baie persoonlik gaan raak. Jy sal nou baie deeglik besef dat daar niemand anders op die aarde is wat soos Ek is nie. Ek moes eintlik al lankal my krag gebruik het om jou en jou mense met ’n ramp van die aarde af weg te vee. Ek het jou egter gespaar sodat my Naam oor die hele wêreld bekend sal word wanneer jy sien hoe sterk Ek werklik is. Jy het mos aangehou om moedswillig met my volk te wees. Jy wou hulle nie laat gaan nie. Ek gaan môre hierdie tyd ’n vernietigende haelstorm oor Egipte laat losbars soos hierdie land in sy hele geskiedenis nog nie gesien het nie. Jy moet betyds jou mense beveel om al jou vee en alles wat buite is, dadelik onderdak te bring. Die hael sal al die mense en diere doodslaan wat nie beskerm word nie.’” Die mense wat vir die farao gewerk het en wat hulle gesteur het aan wat die Here gesê het, het vinnig hulle werkers en hulle vee onderdak gekry. Die ander wat die skouers opgehaal het vir die Here se woorde, het hulle werkers en hulle vee buite in die veld gelos. Die Here het toe vir Moses gesê om sy hand na die wolke toe uit te steek sodat daar hael kan val op al die mense en diere en plante oor die hele Egipte. Toe Moses sy kierie na die lug uitsteek, het die Here weerligslae en hael laat kom. Blitse het op die aarde geslaan. Die Here het ’n yslike haelstorm oor Egipte laat losbars. Daar was ’n storm met haelstene en onophoudelike weerlig oor die hele Egipte soos daar nog nooit tevore was nie. Die hael het oor die hele land geval. Dit het alles platgeslaan wat buite in die veld was: mens en dier en plant, alles. Die hael het selfs die bome in die veld weggeslaan. Die enigste plek waar dit glad nie gehael het nie, was in Gosen waar die Israeliete gewoon het. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my volk is verkeerd. Bid asseblief tot die Here. Hierdie verskriklike donderslae en hael is te veel vir ons. Ek sal julle laat trek. Julle hoef my nie weer te kom vra om te gaan nie.” “Goed,” sê Moses vir hom, “sodra ek uit die stad uit is, sal ek tot die Here bid dat die donderstorm moet bedaar en dat die hael moet ophou. U sal dan besef dat die Here in beheer van die land is. Ek besef egter baie duidelik dat u en u mense nog glad nie die nodige respek vir die Here God het nie.” Die hele vlas- en garsoes is weggeslaan. Die gars was al in die aar en die vlas het net mooi begin uitstoot. Die koring en die hawer is darem nie vernietig nie omdat dit eers later moes opkom. Moses is toe van die farao af weg. Hy het net buite die stad tot die Here gebid. Die donderstorm en hael het opgehou en dit het ophou reën. Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde. Hy en sy amptenare het aanhou weier. Soos die Here tevore gesê het dit sou gebeur, het die farao steeds eiesinnig gebly en bly weier dat die Israeliete kan gaan. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan stel weer jou eis vir die farao. Ek het hom en sy leiers hardkoppig gemaak sodat Ek rede kan hê om al hierdie dinge met hulle te laat gebeur. Julle kan aan julle nageslag gaan vertel hoe Ek met al hierdie dinge wat Ek gedoen het, die Egiptenaars belaglik gemaak het. Ek het dit gedoen om vir julle te wys hoe sterk Ek is en om julle almal te oortuig dat Ek werklik die Here is.” Moses en Aäron is toe na die farao toe. “So sê die Here, die God van die Hebreërs,” sê hulle vir hom. “Hoe lank gaan jy nog bly weier om voor My te buig? Jy moet dadelik my volk laat gaan dat hulle My kan gaan aanbid! As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, bring Ek sommer môre nog ’n ramp van sprinkane in jou land. Daar sal so baie sprinkane wees dat jy nie eens die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal elke krieseltjie groenigheid afvreet wat daar na die haelstorm oorgebly het. Selfs die bome, wat intussen weer begin uitloop het, sal hulle kaalstroop. Hulle sal oral in jou paleis en in die huise van julle leiers en oor die hele Egipte kom. So ver as wat mense kan terugdink, sal hulle nie kan onthou dat so iets al ooit gebeur het nie.” Moses het toe sy rug vir die farao gedraai en is daar weg sonder om hom te groet. Die mense wat vir die farao raad gee, het toe vir hom gevra: “Hoe lank moet ons nog met hierdie probleem sit? Laat tog die mansmense gaan dat hulle tot die Here hulle God kan gaan bid. U kan mos sien Egipte is besig om tot niet te gaan!” Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Nou goed dan, gaan tog en loop bid tot die Here julle God. Maar sê my: Presies wie almal wil julle hê moet saamgaan?” “Ons almal,” sê Moses vir hom, “ons wil almal gaan met ons jongmense en ons oumense, ons seuns en ons dogters. Ons wil ook ons kleinvee en ons beeste saamvat. Ons wil almal saam vir die Here ’n fees gaan hou.” Hy sê toe vir hulle: “Die Here sal aan julle kant moet wees en julle help voor ek die dag julle almal en al julle afhanklikes sommerso sal laat gaan. Dit is duidelik dat julle ’n skelm plan in die mou voer. Niks daarvan nie! Net die mansmense kan gaan om tot die Here te gaan bid. Dit is mos wat julle nog heeltyd bly vra het!” Hy het toe vir Moses en Aäron daar weggejaag. Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en hou dit oor die hele Egipte sodat die sprinkane deur die hele land kan trek. Hulle sal elke groenigheidjie wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.” Toe Moses sy kierie oor Egipte uitsteek, het die Here ’n oostewind oor die land laat waai, dwarsdeur die dag en ook deur die nag. Teen die volgende oggend het dit sprinkane oor die land begin inwaai. Die sprinkane het oor die hele Egipte versprei. Hulle het in groot swerms op alles toegesak. So iets het nog nooit tevore of ook daarna ooit weer daar gebeur nie. Hulle het die grond toegemaak. Dit was sommer donker oor die aarde. Hulle het alles voor die voet weggevreet wat groen was op die grond en wat na die hael aan die bome oorgebly het. In die hele Egipte het daar nie ’n blaartjie aan ’n boom of ’n grassie in die veld oorgebly nie. Die farao het Moses en Aäron dringend laat roep. Hy bieg toe by hulle: “Ek erken ek het ’n fout gemaak. Ek het my misgis met die Here julle God en ook met julle. Vergeef tog net hierdie een keer my fout. Gaan pleit by die Here julle God dat Hy asseblief hierdie dood van my nek moet afhaal.” Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gaan bid. Die Here het toe die wind van die see af laat omswaai in ’n baie sterk westewind. Dit het al die sprinkane in die See van Riete ingewaai. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egipte agtergebly nie. Die Here het egter weer die farao se hardkoppigheid die oorhand oor hom laat kry. Hy wou weer nie kopgee om die Israeliete te laat gaan nie. Die Here het Moses beveel: “Hou jou hand na die hemel toe. Dit sal donker word oor Egipte. Dit sal so donker word dat ’n mens amper aan die donker sal kan vat.” Moses het sy hand boontoe uitgestrek. Dit het drie dae lank stikdonker geword oor die hele Egipte. Drie dae lank kon die Egiptenaars mekaar glad nie sien nie en nie een kon ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gewoon het, was dit egter helder daglig. Die farao het toe vir Moses laat kom en vir hom gesê: “Loop tog en gaan bid tot die Here. Julle moet net julle kleinvee en beeste hier los. Selfs julle kinders kan saam met julle gaan.” Moses was vererg en het hom geantwoord: “Dan sal u maar self die diere moet verskaf vir die slagoffers en brandoffers wat ons vir die Here ons God moet bring. Ons diere moet saam met ons gaan. Daar mag niks agterbly nie. Ons moet uit ons eie diere vir die Here ons God offer. Boonop weet ons glad nie wat ons vir die Here sal moet offer voor ons eers daar aangekom het nie.” Die Here het die farao maar weer laat vassteek. Hy was glad nie bereid om hulle te laat gaan nie. Hy het vir Moses geskreeu: “Gee pad voor my! Ek wil jou nooit weer sien nie! As ek jou ooit weer sien, gaan ek jou doodmaak!” Moses sê toe vir hom: “Jy is hierdie keer reg. Jy sal my nooit weer sien nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal nog een laaste ramp oor die farao en Egipte bring. Na hierdie een hom getref het, sal hy julle toestemming gee om te gaan. Om die waarheid te sê, hy sal julle eintlik wegjaag. Jy moet vir die volk sê om daarop te staan dat hulle Egiptiese bure vir hulle silwer en goue juweliersware gee voor hulle hier weggaan.” Die Here het die Egiptenaars laat kopgee vir sy volk. Die koning se mense en die volk van die land was baie bang vir Moses. Moses sê toe: “Die Here het gesê dat Hy om middernag deur Egipte sal gaan. Deur die hele Egipte sal die eersgebore seun in elke huis doodgaan. Van die farao se oudste seun wat na sy pa koning moes word, tot by die seun van die eenvoudigste slavin wat koring maal op die maalklip, sal dan doodgaan. Selfs onder die vee sal die een doodgaan wat eerste gebore is. Daar sal ’n droewige gehuil in die hele Egipte wees. Dit sal so erg wees soos dit nog nooit tevore gesien is en soos dit nooit weer gehoor sal word nie. Maar niemand sal eers ’n vinger oplig teen enige Israeliet nie, teen geen mens of dier by hulle nie. So sal dit duidelik word dat die Here anders maak met die Egiptenaars as wat Hy met die Israeliete maak. “Dan sal al jou leiers voor my kom kruip. Hulle sal my soebat dat ek en my volgelinge asseblief maar moet weggaan. En as dit klaar gebeur het, sal ek uit die land uit weggaan.” Moses het toe woedend van die farao af weggegaan. Die Here het vir Moses gesê: “Die farao sal nog steeds nie na julle luister nie, maar dit sal My kans gee om nog meer dinge in Egipte te laat gebeur.” Al het Moses en Aäron al hierdie dinge voor die farao gedoen, het die Here gemaak dat hy hardekop gebly het. Hy het aanhou weier om die Israeliete uit sy land uit te laat weggaan. Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is van nou af die belangrikste maand in die hele jaar. Dit moet die eerste maand wees van elke jaar. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. Dit moet die reël wees in Israel wat nooit weer verander word nie. Elke gesin moet sorg dat hulle teen die tiende van hierdie maand alreeds ’n lam in die hande gekry het. As daar te min mense in een gesin is om ’n lam te kan opeet, moet hulle en hulle bure saam maak. Hulle moet kyk hoeveel mense hulle dan is en of hulle saam genoeg is om een lam op te eet. Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees wat uit die skape of die bokke kom. Daar mag niks fout wees met die dier nie. Hulle moet die lam aan die lewe hou tot op die veertiende dag van die maand. “Teen die aand van die veertiende dag moet almal in Israel hulle lamme slag. Hulle moet dan van die bloed van die lam vat en dit aan die kante en boaan die deurkosyn van die huis smeer waar hulle die lam gaan eet. Hulle moet die vleis oor die vuur braai. Al die vleis moet nog in daardie selfde nag opgeëet word. Hulle moet dit saam met brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Daarby moet hulle sous gebruik wat van bitter kruie gemaak is. Hulle mag nie die vleis rou eet nie. Hulle moet dit ook nie kook nie. Die lam moet net so heel en in een stuk op die vuur gebraai word met kop, pootjies, binnegoed en al. Daar mag niks van die vleis oorbly nie. As daar die volgende oggend nog enigiets oor is, moet dit in die vuur verbrand word.” “Julle moet al hierdie goed eet soos mense wat baie haastig is om weg te kom. Die gordels om julle heupe moet vasgetrek wees. Julle moet sandale aan julle voete hê. Julle kieries moet in julle hande wees sodat julle reg kan wees om te begin stap. En julle moet vinnig eet. Dit word die paasfees genoem. Julle moet dit elke jaar hou om die Here se Naam groot te maak. Ek sal in daardie nag deur Egipte trek. Deur die hele Egipte sal Ek in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit sal met die mense sowel as die diere gebeur. Ek sal met die gode van Egipte afreken, want Ek is die Here. Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.” “Elke jaar wanneer julle hierdie fees hou, moet julle onthou wat in Egipte gebeur het. Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees wat julle elke jaar gebruik om fees te vier vir die Here. Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Reeds op die eerste dag van die fees moet julle alles wat suurdeeg in het, uit julle huise wegvat. As enigeen gedurende hierdie sewe dae brood eet wat met suurdeeg gemaak is, moet hy weggejaag word. Op die eerste en die laaste dag van die fees moet julle bymekaarkom om vir die Here kerk te hou. Op daardie dae mag julle glad nie aangaan met julle gewone werk nie. Julle mag wel op daardie dae vir julleself kos gaarmaak. “Julle moet elke jaar hierdie fees hou wanneer julle brode eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Julle moet onthou dat dít die dag is waarop Ek julle families uit Egipte laat wegtrek het. Die dag moet onder julle nasate ’n dag wees waarop hulle jaar na jaar in herinnering roep wat Ek vir julle in Egipte gedoen het. Vanaf die aand van die veertiende dag van daardie eerste maand, tot op die aand van die 21ste dag mag julle nie brood eet met suurdeeg in nie. Vir hierdie sewe dae mag daar nie ’n krieseltjie suurdeeg in enige van julle huise wees nie. As enigiemand, of hy iemand is wat van ’n ander land kom en of hy van geboorte ’n Israeliet is, in hierdie tyd enigiets met suurdeeg in eet, moet julle hom van julle af wegjaag. Niemand mag iets eet waarin daar suurdeeg is nie. Oral waar julle woon, moet julle dan brood eet wat sonder suurdeeg is.” Moses het die leiers van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan kry nou vir elke gesin ’n lam sodat julle dit vir die paasfees kan slag. Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne. Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou, moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek. Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie. Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra. Vat al julle kleinvee en al julle beeste saam waarop julle so aangedring het om saam met julle te vat. Gaan tog net weg. Moenie my verder iets toewens wat sleg is nie.” Ook al die Egiptenaars het by die volk gepleit dat hulle tog so gou moontlik moet weggaan. “Anders,” het hulle gesê, “sal ons nog almal doodgaan.” Die volk het die deeg wat hulle vir die brood geknie het, net so sonder suurdeeg in broodpanne gesit. Hulle het dit in klere toegedraai en op hulle skouers gesit om dit weg te vat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle silwer en goue juweliersware en klere te gee. Die Here het gemaak dat die Egiptenaars gewillig was om dit vir hulle te gee. Hulle het nie omgegee om vir die Israeliete alles te gee wat die volk van hulle gevra het nie. Die Israeliete het die Egiptenaars behoorlik kaal uitgetrek. Die Israeliete het te voet van Rameses af begin loop in die rigting van Sukkot. As hulle afhanklikes nie bygereken word nie, was daar altesaam 600 000 mans. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so vinnig uit Egipte padgee dat daar nie nog tyd was om eers padkos te maak nie. Die tyd wat Israel in Egipte gebly het, was altesaam 430 jaar. Presies op die dag dat dit 430 jaar was, het die mense van die Here uit Egipte padgegee. Dit was ’n nag om baie lank nog te onthou toe die Here dit laat gebeur het dat hulle uit Egipte kon wegtrek. Dit is ’n nag wat die Israeliete en hulle nageslag vir die Here moet onthou. Die Here het vir Moses en Aäron nog meer reëls vir die paasviering gegee: “As iemand nie ’n Israeliet is nie, mag hy nie saam die paaslam eet nie. ’n Slaaf wat met geld gekoop is, mag daarvan eet, maar hy moet reeds besny wees. Iemand wat net vir ’n tyd in die land bly, of gehuur is om ’n bepaalde stuk werk te doen mag nie saam eet nie. Die paaslam moet in die huis geëet word waar dit geslag is. Daar mag niks van die vleis uit daardie huis weggevat word nie. Die bene van die paaslam moet nie gebreek word nie. Almal in die gemeenskap moet aan die fees deelneem. Wanneer daar buitelanders is wat onder julle woon en hulle wil saam met julle die paasfees van die Here vier, moet al hulle mans eers besny word. Hulle sal dan as Israeliete beskou word wat saam met julle paasfees mag vier. Iemand wat nog glad nie besny is nie, mag ook nie die paasfees eet nie. Presies dieselfde reël moet gebruik word vir die Israeliete as vir die buitelanders wat tussen julle woon.” Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Die paasfees is die eerste keer gevier op presies dieselfde dag as waarop die Here die families van Israel uit Egipte laat wegtrek het. Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Julle moet die eerste seun wat ’n ma in die wêreld bring, vir My eenkant sit. In Israel behoort die een wat eerste gebore word, aan My, of dit nou ’n mens is of ’n dier.” Moses het op sy beurt vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou waarop julle weg is uit Egipte. Julle was slawe in Egipte. Die Here het julle egter met sy groot krag uit hierdie land losgekry. Dit is die dag waarop julle nie brood mag eet wat met suurdeeg gemaak is nie. Hierdie dag val in die maand Abib. Wanneer julle in die land aankom waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly, moet julle elke jaar op hierdie dag die paasfees vier. Die Here het julle voorouers belowe dat Hy daardie land aan julle sal gee. Dit is ’n baie vrugbare land. [6-7] “Vir die sewe dae van die paasfees mag julle niks eet waarin daar suurdeeg is nie. Daar mag selfs nie eens ’n brood met suurdeeg in of ’n stukkie suurdeeg by julle te vind wees in hierdie tyd nie. Op die sewende dag moet julle ’n fees hou vir die Here. *** Op daardie dag moet julle vir julle kinders vertel hoekom julle die fees hou. Julle moet vir hulle vertel dat dit oor die dinge is wat die Here vir julle gedoen het toe Hy julle uit Egipte laat loskom het. Die fees sal wees soos iets wat jy in jou hand geskryf het of soos ’n knoop wat jy in jou sakdoek gemaak het sodat jy nie kan vergeet nie. Jy sal moet getuig dat die Here jou met sy groot krag uit Egipte bevry het. Julle moet aan hierdie voorskrif vashou sodat julle elke jaar op die tyd wat bepaal is, hierdie fees vir die Here kan vier. “Die Here het die land van die Kanaäniete aan julle voorouers belowe. Wanneer die Here julle dan by daardie land laat aankom en Hy dit vir julle gee, moet julle alles wat manlik is waaraan ’n ma geboorte gegee het, vir die Here gee. Die eerste manlike dier wat gebore word, moet julle vir die Here gee. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil vir ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Wanneer dit ’n mens is, moet jy jou oudste seun vir iets anders omruil. Wanneer jou seun jou later op ’n dag vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet jy hom antwoord: ‘Omdat die Here ons met sy krag bevry het van die slawewerk wat ons in Egipte moes doen. Die farao het botweg geweier om ons te laat weggaan uit Egipte. Die Here het sy hand laat uitgaan teen almal in Egipte wat eerste gebore is. Hulle het doodgegaan, mens en dier. Dit is hoekom ek al die eerste manlike wesens wat ’n ma in die wêreld bring, aan die Here offer. Hulle behoort aan Hom. Ek kan egter my oudste seun weer terugkoop. Dit is soos ’n merk in jou hand en ’n teken op jou voorkop wat jou daaraan herinner dat die Here die Almagtige ons met krag uit Egipte laat wegtrek het.” Toe die farao uiteindelik instem om die volk te laat gaan, het die Here hulle nie kortpad al langs die see na die land van Filistyne laat trek nie. As hulle met daardie pad langs getrek het, kon hulle in gevegte met ander mense beland het, wat hulle so sou kon laat skrik dat hulle sommer kortom sou vlug terug Egipte toe. God het eerder die volk laat wegdraai om met die pad langs te trek wat na die Rietsee toe gaan. Die Israeliete het hulleself in groepe gerangskik en op ’n ordelike manier uit Egipte uit weggegaan. Moses het Josef se liggaam saamgevat. Josef het die Israeliete destyds plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat wanneer die Here hulle weer na hulle land laat teruggaan. Hulle het van Sukkot af weggegaan en by Etam op die rand van die woestyn gaan kamp opslaan. Die Here self het voor hulle uitgegaan. In die dag het Hy vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolk wat voor hulle uitgaan. In die nag was daar ’n bol vuur in die lug wat vir hulle lig gegee het. Hulle kon dag en nag verder trek. Die wolk in die dag het nooit weggegaan nie en die vuurbol het altyd in die nag daar gebly. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en kamp gaan opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Dit is regoor Baäl-Sefon naby die see. Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal en in die woestyn vasgeval het. Ek gaan die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan die Israeliete agternasit. Die farao en sy hele weermag sal uiteindelik voor My moet buig. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe so gemaak. Toe die koning van Egipte hoor waarheen die Israeliete op pad is, het hy en sy leiers hulle besluit verander. Hulle het gesê: “Wat op aarde het ons besiel om die Israeliete sommerso te laat wegkom?” Die farao het sy oorlogswa en sy perde laat inspan om hulle met sy troepe agterna te sit. Hy het 600 waens uitgesoek. Op elkeen was daar drie manne. Die Here het die farao kop laat verloor. Hy het soos ’n mal ding agter die Israeliete aan gestorm. Die Here het Israel egter teen die Egiptenaars beskerm. Die Egiptenaars met die farao se oorlogswaens en sy perde en sy hele leërmag is agter die Israeliete aan. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle by die see kamp opgeslaan het by Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon. Terwyl die farao al nader kom, het die Israeliete hulle nekke gerek om te sien wat aan die gang is. Toe hulle sien dis die Egiptenaars wat agter hulle aan is, het hulle hulle boeglam geskrik. Hulle het die Here begin soebat om hulle tog te help. Hulle het Moses ook begin verwyt: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons sommer daar al te begrawe nie? Moes jy ons hier na die woestyn toe bring dat ons hier kan doodgaan en hier begrawe word? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat padgee? Het ons nie in Egipte al vir jou gesê nie: ‘Los ons uit, dat ons eerder vir Egipte kan werk’? Dis tog baie beter om slawe in Egipte te wees as om hier in die woestyn dood te gaan!” Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie. Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.” Die Here vra toe vir Moses: “Vir wat staan julle so en roep na My om julle te help? Sê vir die Israeliete hulle moet begin beweeg. Lig op jou kierie en steek jou hand uit na die see se kant toe. Die water sal voor julle oopmaak sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan loop. [17-18] Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om hulle agterna te sit en agter hulle aan te gaan die see in. Wanneer Ek met die farao en sy hele leërmag en sy oorlogswaens en hulle perde klaargespeel het, sal Ek vereer word. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.” *** Die man uit die hemel wat God voor die Israeliete laat uitgaan het wanneer hulle op pad was, het toe aan hulle agterkant gaan staan. Die wolk in die lug wat voor hulle uitgegaan het, het ook aan hulle agterkant gaan staan. Dit het tussen die Israeliete en die leër van die Egiptenaars ingeskuif. Die wolk het dit in die nag lig gemaak aan Israel se kant en donker aan die Egiptenaars se kant. Dit het die twee groepe uit mekaar gehou sodat hulle nie gedurende die nag nader aan mekaar kon kom nie. Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het dwarsdeur die nag ’n sterk oostewind oor die see laat waai. Die see het weggetrek en die wind het ’n pad van droë grond deur die see drooggewaai. Die Israeliete het op grond wat droog was, deur die see getrek. Die water was soos twee mure aan weerskante van hulle. Die Egiptenaars het hulle toe agternagesit. Hulle is agter hulle aan die see in met hulle perde en hulle oorlogswaens met die manne op. Voor die dag breek, so teen die einde van die nagwaak, het die Here vanuit die bol vuur op die Egiptiese leër afgekyk. Hy het toe gemaak dat daar verwarring onder die Egiptenaars ontstaan het. Hy het hulle strydwaens se wiele so laat vasval in die seesand dat hulle glad nie kon beweeg nie. Die Egiptenaars het vir mekaar begin sê: “Ons moet wegkom van hierdie Israeliete af. Die Here is besig om aan hulle kant teen ons te veg.” Die Here sê toe vir Moses: “Steek weer jou hand oor die see uit. Die waters sal terugstroom oor Egipte, oor sy oorlogswaens en hulle manskappe.” Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Teen dagbreek het die see weer begin terugloop na waar dit vroeër was. Die Egiptenaars het voor die water probeer padgee, maar die Here het hulle in die see laat verdrink. Toe die water oor hulle terugvloei, het die oorlogswaens met hulle bemanning en al onder die water verdwyn. Van die hele leër van die farao wat agter die Israeliete aan is die see in, het daar nie ’n enkele een oorgebly nie. Die Israeliete het op droë grond deur daardie see getrek. Vir hulle was die water soos twee mure waartussen jy deurgeloop het. So het die Here daardie dag vir Israel uit die kloue van die Egiptenaars gered. Die Israeliete het die lyke van die Egiptenaars op die strand sien lê. Hulle het gesien hoe die Here met vernietigende krag teen Egipte geveg het. Die volk het baie groot respek vir die Here gekry. Hulle het in die Here geglo. Hulle het ook begin glo dat die Here Moses na hulle toe gestuur het. Moses en die Israeliete het toe ’n lied vir die Here gesing. Dit gaan so: “Ek wil oor die Here sing. Hy is geweldig groot. Hy gooi die perd en die oorlogswa in die see. My krag en my sterkte kom van die Here af. Hy is die Een wat my verlos. Hy is my God. Ek wil oor Hom sing. Hy was die God van my voorouers. Ek wil sê hoe wonderlik Hy is. “Die Here kan oorlog maak. Sy Naam waarvoor almal bang is, is ‘Die Here’. Farao se oorlogswaens en sy leër het Hy in die see gesmyt. Sy beste offisiere is onder in die Rietsee. Golwe het oor hulle gebreek. Hulle het soos ’n klip in die dieptes weggesink. “U regterhand, Here, is verskriklik sterk. U regterhand, Here, maal die vyand stukkend. U is geweldig hoog. U slaan elkeen plat wat teen U probeer opstaan. U woede kom op hulle af. Dit vreet hulle weg soos vuur droë gras verslind. “U het die see opgedam toe U daarop geblaas het. Die watergolwe het gaan stilstaan soos ’n dam water. Die watergewoel het binne-in die see gaan vassteek. “Die vyand het gesê: ‘Ek sal Israel agtervolg en hulle aan die nek gryp. Ek sal alles by hulle vat wat ek wil. Ek sal my swaard uitpluk en hulle teen die grond vasdruk.’ “U het met u asem oor hulle geblaas en die see het hulle ingesluk. Hulle het soos lood gesink in daardie geweldige waters. “Wie is daar onder dié wat sterk is, wat met U vergelyk kan word, Here? Wie is daar nog wat so hoog bo almal en alles uittoring? Wie kan sulke wonderlike dinge doen? Wie kan sulke wonderwerke laat gebeur? U het u regterhand uitgesteek. Die aarde het die vyand ingesluk. “Met u liefde wat so getrou bly, lei U die volk wat U losgekoop het. Met u groot krag vat U hulle na die land waar u groot Naam gaan woon. Wanneer die volke hoor wat gebeur het, gaan hulle bewe. Vrees gaan die inwoners van Filistea aan die keel gryp. Die leiers van Edom gaan hulle doodskrik. Die sterk manne van Moab se bene gaan begin bewe. Die inwoners van Kanaän se moed gaan hulle begewe. Vrees en angs sal oor hulle kom. Hulle sal versteen staan voor u groot krag. Hulle sal vasgenael bly staan, Here, terwyl u volk by hulle verbytrek, die volk wat U vir Uself gekoop het, sal ongehinderd by hulle verbygaan. U sal u volk bring en hulle op u berg laat woon. Op die plek, Here, waar U gekies het om te woon. Die plek, Heer, waar U vir Uself ’n plek vir aanbidding gemaak het. Die Here regeer as koning vir nou en vir altyd.” Dit was regtig so. Die Here het die water van die see oor die farao se perde en oorlogswaens en bemanning laat terugspoel toe hulle daardeur wou gaan. Toe die Israeliete daar deurgegaan het, was dit nog droë grond. Aäron se suster Miriam was ’n boodskapper van die Here. Sy het ’n tamboeryn gevat en begin dans. Al die vroue het agter haar aan gedans en op hulle tamboeryne geslaan. Sy het hulle uitgenooi om saam met haar te sing: “Kom ons sing vir die Here ’n lied. Hy is geweldig groot. Hy het die perd en die oorlogswa in die see gegooi.” Moses het die Israeliete kamp laat opbreek by die Rietsee. Hulle het toe na die Surwoestyn getrek. Hulle het drie dae lank deur die woestyn getrek, maar hulle kon nie ’n plek kry waar daar water was nie. Van daar af het hulle na ’n plek gegaan met die naam Mara. Daar was wel water, maar hulle kon dit nie drink nie. Die water was brak en het bitter gesmaak. Dis hoekom die plek Mara (dit beteken “bitter”) genoem word. Die volk het toe by Moses kom kla en by hom gemor: “Wat moet ons dan drink?” Moses het by die Here hulp gaan vra. Die Here wys toe vir hom ’n stuk hout wat hy in die water moet gooi. Nadat hy dit gedoen het, het die water drinkbaar geword. Dit was ook daar waar die Here vir hulle reëls en regulasies gegee het. Hy wou hulle daarmee toets om agter te kom of hulle bereid was om na Hom te luister. Hy het vir hulle gesê: “Jy moet baie goed luister na die Here jou God. Jy moet alles doen wat vir Hom reg is. Jy moet fyn luister na die wette wat Hy vir jou gee. Jy moet alles doen wat Hy van jou vra. As jy dit doen, sal Ek sorg dat jy nie dieselfde ellendes oorkom as Egipte nie. Ek is die Here. Ek sal sorg dat jy gesond bly.” Hulle is van daar af weg en het by Elim aangekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water kamp opgeslaan. Op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipte weg is, het die Israeliete van Elim af in die Sinwoestyn aangekom. Dit is tussen Elim en Sinai. Daar het hulle by Moses en Aäron oor die min kos kom kla: “Die Here kon ons maar liewer in Egipte laat doodgaan het. Toe ons daar gebly het, was daar ten minste oorgenoeg kos om te eet. Julle het ons hiernatoe gebring om van die honger dood te gaan.” Die Here sê toe vir Moses: “Ek gaan vir julle kos van bo af gee. Die volk moet dit elke dag bymekaarmaak. Dit sal vir My wys of hulle bereid is om te leef soos Ek wil hê. Hulle moet gereedmaak om elke keer op die sesde dag twee keer meer huis toe te bring as wat hulle normaalweg elke dag bymekaarmaak.” [6-7] “Hoekom kom staan julle by ons en kla?” het Moses en Aäron toe vir die Israeliete gevra. “Julle sal teen môre besef dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Hy sal vir julle wys hoe groot Hy is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla.” *** Moses het vir hulle gesê: “Dit is eintlik nie oor ons dat julle kla nie. Julle kla oor die Here. Wanneer die Here vir julle vanaand vleis gee om te eet en môreoggend brood dat julle versadig kan word, moet julle besef dat die Here julle hoor kla het en dat Hy dit beskou as ’n aanklag teen Hom.” Moses het vir Aäron gesê om almal bymekaar te maak om voor die Here te kom. Die Here het gehoor hoe hulle oor Hom kla. Terwyl Aäron nog met hulle praat, het hulle in die rigting van die woestyn gekyk. Daar het hulle die Here se grootheid gesien. Dit het gelyk soos ’n helder lig wat binne-in ’n wolk skyn. Die Here het weer vir Moses gesê: “Ek het die Israeliete se gekla gehoor. Sê tog vir hulle: ‘Teen vanaand se kant sal julle vleis hê om te eet. Julle sal julle môreoggend versadig eet aan brood. Julle sal dan besef dat Ek, die Here, julle God is wat self vir julle sorg.’” Teen die aand se kant het daar swerms voëltjies aangevlieg gekom. Hulle het op die grond gaan sit, die hele kamp vol. Die volgende oggend het daar reg rondom die kamp dou op die grond gelê. Toe die dou verdamp, het daar op die grond ’n dun lagie vlokkies gelê wat soos ryp gelyk het. Die Israeliete het nie geweet wat dit was nie. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit?” Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Dis hiervan dat die Here gesê het julle soveel bymekaar moet maak as wat elkeen elke dag nodig het. Julle moet elke dag vir elke persoon in julle tent twee kilogram daarvan optel.” Die Israeliete het toe so gemaak. Die een het minder en die ander weer meer daarvan opgetel. Dit was net mooi genoeg vir elke dag. Dié wat baie opgetel het, het nie te veel gehad nie. Daar was ook nie te min vir dié wat minder opgetel het nie. Daar was elke dag net mooi genoeg vir elkeen om te eet. Moses het ook vir hulle gesê: “Julle mag nie iets vir die volgende dag laat oorbly nie.” Daar was ongelukkig mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan tot die volgende oggend laat oorbly. Daar het toe goggas in gekom en dit het sleg geruik. Moses het vies geword vir hulle. Hulle het elke oggend vroeg gegaan en bymekaargemaak wat hulle nodig gehad het. Wanneer die son later op die grond begin bak, het alles wat nie opgetel is nie, weggesmelt. Op die sesde dag moes hulle dubbel soveel as gewoonlik bymekaarmaak: vier kilogram vir elkeen. Die leiers het vir Moses kom vra of dit reg is. Hy het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak. Môre is die Here se dag waarop ons moet rus. Julle moet reeds vandag gaarmaak wat julle vir môre nodig gaan hê. Bak vandag wat julle wil bak en kook wat julle wil kook. Wat te veel is vir vandag, moet julle regsit om môre op die rusdag te eet.” Hulle het gemaak soos Moses gesê het hulle moet maak. Hulle het dit vir die sewende dag gebêre. Dit het glad nie sleg geword nie. Daar het ook nie goggas in gekom nie. Moses het vir hulle gesê: “Julle kan dit gerus maar vandag eet, want dit is vandag die Here se rusdag. Julle sal nie vandag enigiets in die veld kry om op te tel nie. Julle moet ses dae lank elke dag daarvan gaan optel. Die sewende dag is die Here se rusdag. Julle sal dan niks daar kry nie.” Daar was nogtans mense wat op die sewende dag uitgegaan het om kos bymekaar te gaan maak. Daar was egter niks om op te tel nie. Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle nog aanhou weier om te doen wat Ek van julle vra? Julle kan mos sien dat Ek van die rusdag onthou en op die sesde dag sorg dat daar genoeg kos is vir die volgende twee dae. Op die rusdag moet elkeen by sy huis bly. Hy moet nie nog op die sewende dag van sy tent af weggaan om kos te gaan soek nie.” So het die volk dan op die sewende dag gerus. Die Israeliete het hierdie brood “manna” (dit beteken “Wat is dit dié?”) genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het gesmaak soos iets met heuning in. Moses het ook gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar. Hulle moet sien watse soort kos die Here vir die Israeliete in die woestyn gegee het om te eet.” Moses het vir Aäron die werk gegee om twee kilogram manna in ’n kleipot te sit. Hy moes dit voor die Here gaan neersit om dit vir die nageslag te bewaar. Soos die Here Moses beveel het, het Aäron dit later in die ark bewaar waarin die bewys van Israel se ooreenkoms met die Here gehou is. Die Israeliete het vir die volgende 40 jaar manna geëet. Dit was hulle kos totdat hulle in Kanaän aangekom het waar hulle kon plant en oes. ’n Kilogram was ’n tiende van die efa-gewigseenheid. Die Israeliete het uit die Sinwoestyn weggetrek. Die Here het elke keer vir hulle gewys waarheen hulle moes gaan. So het hulle by Rafidim uitgekom en daar kamp opgeslaan. Daar was egter nie vir hulle water om te drink nie. Die volk het met Moses aan die stry geraak. Hulle wou hê hy moes sorg dat daar genoeg water is vir hulle om te drink. Moses het vir hulle gesê: “Waarom kom staan julle nou met my en rusie maak? Hoekom tart julle die Here so uit?” Die volk het so dors geword dat hulle Moses begin verwyt het: “Jy het ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat wegtrek sodat ons hier in die woestyn van dors kan doodgaan.” Moses het by die Here hulp gaan vra: “Here, wat kan ek met hierdie volk doen? Hulle gaan my met klippe doodgooi.” Die Here sê toe vir hom: “Vat dieselfde kierie waarmee jy op die Nyl geslaan het. Vat ook ’n paar van die leiers van Israel saam met jou. Loop saam met hulle voor die volk uit na die rots waar Ek vir jou staan en wag by Horeb. Slaan met jou kierie op die rots. Daar sal water uit die rots kom vir die volk om te drink.” Terwyl die leiers staan en kyk, het Moses op die rots geslaan. Daar het water uitgekom. Hy het die plek Massá (dit beteken “uittart”) en Meriba (dit beteken “rusie”) gedoop. Die Israeliete het daar met hom rusie gemaak. Hulle het die Here se geduld beproef toe hulle gevra het: “Is die Here nog by ons of het Hy al lankal weggeraak?” Die Amalekiete het by Rafidim teen die Israeliete kom oorlog maak. Moses het vir Josua gesê: “Kies vir jou die manne uit met wie jy teen die Amalekiete kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan. Ek sal die kierie wat God vir my gegee het in my hand hou.” Josua het die manne gevat en die geveg met die Amalekiete gaan begin. Moses, Aäron en Hur het teen die koppie uitgeklim en bo-op gaan staan. Solank as wat Moses sy hand in die lug gehou het, het Israel die oorhand gehad. Die oomblik as hy sy hand laat sak het om te rus, swaai die geveg om en begin Amalek wen. Moses se hand het naderhand moeg geword. Hulle het hom toe op ’n klip laat sit. Aäron en Hur het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou. So kon sy hande in die lug bly totdat die son die dag ondergegaan het. Josua het die Amalekiete daardie dag heeltemal verslaan. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al hierdie dinge wat gebeur het, in ’n boek neerskryf. Jy moet dit ook vir Josua op die hart druk dat Ek gemaak het dat niemand op aarde ooit weer aan die Amalekiete sal dink nie.” Moses het by daardie plek ’n hoop klippe laat pak as ’n gedenkteken vir hierdie gebeure. Hy het dit genoem: “Die Here is my vlag.” Hy het gesê: “Die Here se vlag moet hoog in die wind waai. Die Here veg elke keer teen die Amalekiete.” Moses se skoonpa was mos Jetro. Hy het in Midian vir die Here gewerk en Hom met offers gedien. Hy het gehoor wat God alles met sy volk en met Moses laat gebeur het. Hy het gehoor hoe die Here Israel laat wegtrek het uit Egipte. [2-5] Moses se skoonpa het toe by hom kom kuier daar waar hulle by die berg van die Here in die woestyn kamp opgeslaan het. Hy het Moses se vrou, Sippora, en sy twee seuns, Gersom en Eliëser, saam met hom gebring. Moses het hulle destyds uit Egipte teruggestuur om by sy skoonpa te gaan bly. Soos voorheen gesê, het hy die oudste seun Gersom genoem. Die naam het daarop gewys dat Moses ’n vreemdeling in ’n vreemde land moes word. Die tweede seun het hy Eliëser genoem. Dit het daarna verwys dat die God van sy voorouers hom gehelp het toe die farao van destyds hom wou doodmaak. *** *** *** Moses se skoonpa, Jetro, het hom met iemand laat weet dat hy en sy vrou en twee seuns by die kamp aangekom het. Moses het sy skoonpa buite die kamp gaan ontmoet. Hy het, soos dit die gewoonte was, voor hom gebuig en hom op die wang gesoen. Na hulle mekaar klaar uitgevra het oor hoe dit met elkeen gaan, is hulle na Moses se tent toe. Moses het sy skoonpa uitvoerig vertel wat die Here alles met die farao en met Egipte laat gebeur het om Israel te bevry. Hy het hom ook vertel van al die probleme wat hulle langs die pad gehad het en hoe die Here hulle daaruit gehelp het. Jetro was baie bly om te hoor van al die wonderlike dinge wat die Here laat gebeur het om Israel uit Egipte te bevry. Jetro het gesê: “Loof die Here! Hy het julle uit die greep van Egipte en uit die hand van die farao bevry. Hy het sy volk uit die kloue van Egipte geruk. Nou weet ek dat die Here groter is as enige mag op aarde, as enige onregverdige ding wat hulle met julle gedoen het.” Moses se skoonpa, Jetro, het toe ’n offer wat verbrand word en ook gewone offers van diere wat geslag word, vir God gebring. Aäron en die leiers van Israel het ook gekom en saam met hom die offer-ete geëet waarmee hulle die Here geloof en grootgemaak het. Die volgende dag moes Moses as regter optree. Hy moes na die sake luister wat die mense van die volk teen mekaar gehad het en daaroor uitspraak lewer. Die mense het tou gestaan van vroeg tot laat en lank gewag vir hulle beurt. Moses se skoonpa het gesien hoe Moses probeer om self al die sake van die volk te verhoor. Hy vra toe vir hom: “Wat probeer jy regkry? Hoekom wil jy al die hofsake alleen verhoor? Die volk moet die hele dag lank vir jou staan en wag.” Moses het vir hom gesê: “Die volk kom na my toe omdat hulle God se beslissing wil hê. Wanneer hulle van mekaar verskil oor ’n saak, kom hulle na my toe. Ek moet vir hulle leer wat in God se wette staan en vir hulle volgens die Here se reëls sê wie is reg en wie is verkeerd.” “Jy hanteer die saak nie reg nie,” sê Moses se skoonpa toe vir hom. “Hierdie ding gaan vir jou en die volk skeefloop. Jy laai te veel hooi op jou vurk. Jy kan dit onmoontlik alles alleen doen. Luister nou na goeie raad. Mag die Here daarmee saamstem. Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat. Gaan aan om met hulle sake na God toe te gaan en vir Hom te vra wat reg is. Wys die volk op die wette en die voorskrifte. Gaan aan om vir hulle te wys hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen. “Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense. Hulle moet goed genoeg wees om die werk te kan doen. Hulle moet respek hê vir God en vir die waarheid. Iemand moet hulle nie met geld kan omkoop nie. Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra. Dit sal sake vir jou makliker maak. As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word.” Moses het sy skoonpa se raad aanvaar. Hy het die plan geïmplementeer. Hy het mans uit die hele Israel aangestel wat reg was om die werk te doen. Hy het een van hulle vir elke 1 000, of 100, of 50 of tien mense aangewys. Hulle was deurentyd beskikbaar vir die volk om na hulle sake te luister. Hulle het die moeiliker sake na Moses verwys. Die sake wat makliker was, het hulle self verhoor. Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa. Jetro het weer teruggegaan na sy eie land toe. [1-2] Die Israeliete het van Rafidim af verder getrek. Toe hulle presies drie maande uit Egipte weg was, het hulle in die Sinaiwoestyn aangekom. Hulle het aan die voet van berg Sinai kamp opgeslaan. *** Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die Here het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Jy moet vir die nageslag van Jakob gaan sê, aan die Israeliete hierdie boodskap oordra: ‘Julle het gesien wat Ek met Egipte gemaak het. Ek het julle veilig hier by hierdie berg laat uitkom. Ek was soos ’n arend wat onder haar kuiken vlieg en keer dat hy val wanneer die kuiken leer vlieg. [5-6] As julle regtig aan My gehoorsaam is en by my ooreenkoms met julle bly, sal julle uit al die volke van die hele aarde my eie persoonlike volk wees. Julle sal ’n volk wees van mense wat vir My offers bring en My dien. Julle sal ’n volk wees wat alles vir My doen.’ Dit is my boodskap wat jy vir die Israeliete moet gaan gee.” *** Moses het van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het die Here se boodskap vir hulle gegee. Die hele volk het toe gesê asof hulle almal net met een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons vra.” Moses het teruggegaan en vir die Here gaan sê wat hulle reaksie was. Nadat Moses vir die Here gesê het hoe die volk geantwoord het, het die Here vir hom gesê: “Ek gaan in ’n dik onweerswolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe dit klink wanneer Ek met jou praat. Hulle sal jou dan vertrou omdat hulle weet dat Ek met jou praat. Gaan nou terug na die volk toe,” het die Here verder vir hom gesê, “en laat hulle hulle gereedmaak en hulle klere was sodat hulle oormôre reg sal wees om die Here te ontmoet. Hy sal op daardie dag afkom uit die hemel na die Sinaiberg toe. Jy moet ’n tou om die berg span om die volk van die berg af weg te hou. Jy moet vir hulle sê dat jy enigeen wat op die berg klim, sal doodmaak. Hulle mag selfs nie eens tot onder by die voet van die berg kom nie. Enigeen wat by die berg kom, of dit nou ’n dier of ’n mens is, kan nie langer bly lewe nie. Die oortreder moenie eens in hegtenis geneem word nie, maar sommer net daar met klippe doodgegooi word of met pyl en boog doodgeskiet word. Eers wanneer daar ’n trompet blaas, mag hulle uit die kamp uit na die berg toe kom.” Moses het toe van die berg afgeklim. Hy het teruggegaan na die volk toe en hulle aangesê om hulle gereed te kry om die Here te ontmoet. Hulle het hulleself begin regkry en hulle klere gewas. Moses het vir die volk gesê: “Kry julleself reg vir die belangrike gebeurtenis wat oormôre gebeur. Julle moet tot dan toe nie by mekaar slaap nie.” Op die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig. Daar het swaar, donker wolke oor die berg gehang. ’n Trompet het baie hard geblaas. Die hele volk het begin bewe daar in die kamp. Moses het die volk toe uit die kamp laat kom om die Here by die berg te gaan ontmoet. Hulle het by die voet van die berg gaan staan. Die Here het afgekom na die berg toe. Daar was vuurvlamme om Hom. Die hele berg Sinai was toe onder die rook. Dit was soos die rook wat uit ’n oond borrel. Die hele berg het geskud. Die trompet het al hoe harder geblaas. Moses het met God gepraat en die Here het hom met donderslae geantwoord. Die Here het afgekom na die top van berg Sinai toe. Hy het vir Moses geroep om op te klim boontoe. Moses het daarnatoe opgeklim en die Here het daar vir hom gesê: “Klim af en gaan waarsku die volk dat hulle nie by die lyn wat jy om die berg gespan het, moet probeer verbykom nie. Hulle moet nie kom probeer kyk hoe die Here lyk nie. Almal wat by die lyn probeer verbykom, sal dood neerval. Selfs die mense wat vir My offers bring, moet op ’n veilige afstand bly staan as hulle nie wil hê die Here moet iets met hulle laat gebeur nie.” Moses het vir die Here gesê: “Die volk kan nie hier teen die berg uitklim nie. U het ons tog self gewaarsku om dit af te sper omdat dit die plek is wat vir U eenkant gehou word.” “Goed,” sê die Here vir Moses, “gaan dan nou terug en dan kom jy weer en bring hierdie keer vir Aäron saam met jou. Maar onthou, die mense wat die offers bring en die mense van die volk mag nie verby daardie lyn kom wat jy gespan het nie. Hulle mag nie na die Here probeer opklim nie. As hulle dit doen, sal Ek hulle doodmaak.” Moses het toe na die volk toe afgeklim en hulle gaan waarsku. Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie. [4-5] Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. *** Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het. “Onthou dat die sewende dag die Here se dag is. Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit. “Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly. “Jy mag nie iemand anders doodmaak nie. “Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie. “Jy moenie iets steel nie. “Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie. “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.” Die volk het baie bang geword toe hulle die donderweer hoor en die blitse sien. Hulle het gebewe toe hulle sien hoe vol rook die berg is en hoor hoe hard die trompet blaas. Hulle het gebewe, so bang was hulle. Hulle het gesorg dat hulle op ’n afstand bly staan. Hulle het Moses gesoebat: “Praat jy liewer met ons dat ons na jou kan luister. God moenie met ons praat nie. As Hy praat, sal ons doodgaan.” “Julle moenie bang wees nie,” sê Moses toe vir hulle, “God het kom kyk of julle versigtig genoeg vir Hom is sodat julle nie teen Hom sal sonde doen nie.” Terwyl die volk op ’n afstand bly staan, het Moses na die donker wolk toe gegaan waarin God was. God het vir Moses gesê om met die Israeliete te praat: “Julle het nou self gesien wat gebeur as Ek van bo uit die hemel met julle praat. Hou op om vir julleself afgodsbeelde van silwer of goud te maak wat julle saam met My wil aanbid. “Bou vir My ’n offerplek van grond op elke plek wat Ek vir julle wys waar Ek wil hê julle tot My moet bid. Bring vir My op daardie altaar die diere wat julle as brandoffers en dankoffers uit julle kleinvee en julle beeste offer. Ek sal na daardie plek kom en Ek sal julle lewe goed maak. As jy die offerplek van klip wil bou, moet dit nie van klip wees wat julle gekap het nie. Klip wat met gereedskap bewerk is, is nie aanvaarbaar vir my altare nie. My altare mag ook nie trappies hê waarmee ’n mens boontoe opklim nie. ’n Mens moenie van onder af onder die een wat opklim om die offer te bring se klere kan inkyk nie.” “Gee die volgende reëls vir my volk aan wie Ek My verbind het.” “As ’n Hebreeuse man soveel skuld gemaak het dat jy dit vir hom moes betaal, moet die man ses jaar lank sonder betaling vir jou werk. Hy is dan jou slaaf. In die sewende jaar moet jy hom vrylaat. Hy skuld jou dan niks verder nie. As hy nie getroud was toe hy by jou begin werk het nie, maar intussen getrou het, moet jy net vir hom vrylaat. As hy aan die begin alreeds getroud was, moet jy sy vrou saam met hom laat gaan. As die persoon vir wie hy slawewerk doen, vir hom ’n vrou gegee het in die tyd dat hy by hom gewerk het en hy het kinders by die vrou gehad, moet hy sonder hulle vrygelaat word. Die vrou en haar kinders moet by die eienaar bly. Hulle behoort aan hom. As die man wat as slaaf gewerk het, reguit sê: ‘Ek hou van my baas en ek is lief vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet die eienaar saam met hom na die Here se plek toe gaan. Hy moet hom daar teen ’n deur of deurkosyn laat staan en met ’n els ’n gaatjie in sy oor maak. As hy dit gedoen het, bly daardie man vir die res van sy lewe sy slaaf. “Wanneer iemand so diep in die skuld raak dat hy sy dogter moet verkoop om slawewerk te doen, word sy nie soos manlike slawe na ses jaar vrygestel nie. As haar eienaar nie met haar wil trou nie, breek hy sy ooreenkoms met haar. Hy moet haar dan verkoop. Hy mag haar egter nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie. As hy haar gekoop het om met sy seun te trou, mag hy haar nie langer behandel asof sy ’n slaaf is nie. Sy word vir hom soos sy eie dogter. Indien hy egter wel self met haar trou en later met ’n tweede vrou ook trou, en sy word dan sy tweede vrou, mag hy nie ophou om vir haar te sorg en by haar te slaap nie. As hy enige van hierdie dinge nie doen nie, het sy die reg om vry weg te gaan. Daar hoef dan nie ’n enkele sent vir haar betaal te word nie.” “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan doodgaan, moet hy self doodgemaak word. As hy dit nie vooraf beplan het nie, maar hom in die hitte van die stryd seergemaak het, sal Ek ’n plek gee waarheen hy mag vlug. Wanneer iemand ’n ander koelbloedig doodmaak, moet hy weggevat word om opgehang te word, selfs al het hy na die altaar gevlug en daar gevra om vergewe te word. Iemand wat sy ouers beseer, moet doodgemaak word. As een mens ’n ander mens steel, of dit nou is om daardie persoon vir geld te verkoop of hom as slaaf aan te hou, is hy met die dood strafbaar. Selfs minagting vir jou ouers is met die dood strafbaar. [18-19] “As twee mans aan die baklei raak, kan dit gebeur dat die een die ander een met ’n klip of met sy vuis slaan sodat hy in die bed beland. Dit kan gebeur dat hy nie daarvan doodgaan nie, maar met ’n kruk moet loop as hy weer regkom. As dit gebeur, moet die persoon wat hom geslaan het hom vergoed vir die tyd wat hy siek was en vir hom sorg tot hy weer gesond is. *** As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word. As die slaaf dit oorleef en nie binne ’n dag of twee doodgaan nie, is dit in orde. Die man besit tog immers die slaaf.” “Twee mans kan miskien met mekaar baklei. Terwyl hulle veg, kan een van hulle teen ’n vrou stamp wat swanger is sodat sy daardeur haar baba verloor. Die man wat haar die baba laat verloor het, moet dan skadevergoeding betaal. Haar man sal ’n eis instel. Daar moet dan onderhandel word oor die bedrag wat betaal moet word. As hy skade veroorsaak het wat vir altyd sal bly, moet hy daarvoor baie geld betaal. As sy doodgaan, sal hy met sy eie lewe moet betaal. ’n Oog se skade moet met ’n oog goed gemaak word. As daar ’n tand uit is, moet hy een van sy tande laat uithaal. ’n Hand se skade moet met ’n hand betaal word, ’n voet met ’n voet, ’n brandplek met ’n brandplek, ’n wond met ’n wond en ’n kneusplek met ’n kneusplek. As ’n eienaar sy slaaf of slavin op die oog slaan en die slaaf kan nie meer met daardie oog sien nie, moet die eienaar die slaaf laat vry gaan om die skade van die oog goed te maak. Ook net so wanneer hy sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet hy daardie persoon vrylaat om so vir die tand te vergoed.” “As ’n bul toevallig ’n man of ’n vrou met sy horings doodstoot, moet die bul dadelik met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag egter nie geëet word nie. Die eienaar van die bul hoef ook niks verder te betaal nie. As daar egter al vantevore vir die eienaar gesê is dat sy bul sulke neigings het en hy niks daaraan gedoen het nie, moet hy saam met die bul doodgegooi word wanneer die bul ’n man of ’n vrou se dood veroorsaak. As dit miskien kan gebeur dat die familie bereid is om geld vir hulle familielid se dood te vat, kan hy bly lewe, maar hy moet die volle bedrag aan hulle betaal. Selfs al het die bul ’n seun of ’n dogter doodgestoot, bly dit nog presies dieselfde. Indien die bul ’n manlike of vroulike slaaf doodgemaak het, moet die eienaar van die slaaf 40 gram silwer kry. Die bul moet in elk geval nog met klippe doodgegooi word. “As iemand ’n put vir water grawe en hy sit nie ’n deksel daarop nie, of hy los die put oop en ’n bees of ’n donkie val daarin, moet die man wat die put gegrawe het vir die eienaar van die dier skadevergoeding betaal. Nadat hy hom betaal het, mag hy egter die karkas van die dier hou.” “As iemand se bul iemand anders se bul doodmaak, moet die lewendige bul verkoop word. Die geld moet dan tussen die twee eienaars verdeel word. Hulle moet ook die karkas van die dooie bul tussen mekaar verdeel. As almal egter geweet het dat dit ’n bakleierige bul was en sy eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet hy die eienaar van die dooie bul vir die hele bul vergoed. Hy mag die dooie bul vir homself vat.” “Wanneer iemand ’n bees of ’n skaap steel om dit te slag of te gaan verkoop, moet hy daarvoor betaal. Hy moet vyf keer soveel betaal as wat die bees werd was. Vir die skaap moet hy vier keer soveel betaal as wat hy werd was. [2-4] Die dief moet elke sent terugbetaal. As hy nie kan betaal nie, moet hy self verkoop word vir die bedrag geld wat hy nog geskuld het. As die bees of die donkie of die skaap wat hy gesteel het, nog lewendig by hom gekry word, moet hy twee keer soveel terugbetaal as wat die dier werd is. As hy op heterdaad betrap word terwyl hy gedurende die nag die diere steel en hy word daar doodgemaak, is dit nie ’n oortreding wat gestraf kan word nie. Wanneer hy egter helder oordag steel en dan gevang en doodgemaak word, is dit ’n strafbare oortreding.” *** *** “Iemand kan uit nalatigheid sy weiveld of sy tuin laat kaal vreet het. Hy jaag dan sy vee in ’n ander man se veld in om dit ook te gaan wegvreet. As dit gebeur, moet hy daarvoor vergoed. Hy moet die beste wat sy eie tuin of veld kan oplewer, as boete betaal. As ’n vuur begin versprei het en handuit ruk wanneer die droë doringbosse vlam vat - sodat iemand anders se graan wat nog op die land is, of sy graan wat reeds geoes is en op die land in miedens gepak is, afbrand - moet die persoon wat die vuur laat weghardloop het, die skade dubbel en dwars vergoed.” “As iemand vir ’n ander persoon geld of goed gegee het om vir hom op te pas en dit word dan uit sy huis gesteel, moet die dief dubbel daarvoor vergoed as hy gevang word. As die dief nie gevang word nie, moet die persoon wat dit opgepas het na die plek gaan waar God aanbid word en plegtig voor God verklaar dat dit nie hy was wat die ander man se goed gesteel het nie. “As twee mense aan die stry raak oor wie se bees dit is, of donkie of skaap of klere of goed wat weggeraak het en weer teruggekry is, moet hulle na God se plek toe gaan. God sal wys watter man lieg. Hy moet dan vir die ander man twee maal soveel teruggee as wat die goed werd is waaroor hy gestry het. “As iemand ’n donkie of ’n bees of ’n skaap of enige ander vee by iemand los om dit vir hom op te pas en een van die diere vrek terwyl dit by hom is, of dit word beseer of gesteel sonder dat iemand dit sien, moet die man wat die dier opgepas het voor die Here gaan sweer dat dit nie hy was wat die dier gesteel het nie. Die eienaar van die dier moet sy woord aanvaar. Daar word in hierdie geval nie skadevergoeding betaal nie. As die dier egter gesteel is terwyl hy dit kon gekeer het, moet hy die eienaar vergoed. As ’n roofdier die dier gevang het, moet hy die verskeurde dier bring as bewys dat dit gevang is. In hierdie geval hoef daar nie vergoed te word nie. “As ’n persoon iemand anders se dier leen om vir iets te gebruik en die dier kry seer of vrek terwyl sy eienaar nie by is nie, moet die persoon wat die dier geleen het, die eienaar vergoed. As die eienaar wel by was, hoef daar niks betaal te word nie. As hy die dier gehuur het, moet die huurgeld nog steeds betaal word.” “As ’n man ’n jongmeisie verlei wat nog nie verloof was nie, en hy praat haar om om by hom te slaap, moet hy aan haar pa die bruidsprys betaal en met haar trou. As haar pa volstrek weier dat die man met sy dogter trou, moet die man hom ’n bedrag geld gee. Die bedrag is dieselfde as die geld wat betaal word aan ’n pa om sy dogter te kry. “’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie. Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word. Elkeen wat offers bring vir enige ander god as net die Here, moet doodgemaak word. “Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, sleg behandel nie. Jy was mos self ’n mens uit ’n ander land toe julle in Egipte was. Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie. [23-24] As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg. *** “Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie. As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan. Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense. “Moenie God se Naam sleg maak nie. Moenie die leiers van jou volk vloek nie. “Bring alles van jou graan- en druiweoes in berekening wanneer jy my deel bereken. Onthou dat jou oudste seun aan My behoort. Die eerste bees of skaap wat gebore word, kan vir die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy dit aan My afstaan. Julle moet uitsonderlike mense wees wat met alles wat julle het, vir My lewe. Julle mag nie vleis eet van diere wat deur roofdiere in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gee om te vreet.” “Jy moenie praatjies oor ander mense verder oorvertel as jy weet dit is nie waar nie. Jy moenie met oortreders saamsweer om saam met hulle in die hof te lieg nie. Jy moenie iets doen omdat almal dit doen nie. Jy moenie saam met almal iets doen as jy weet dit is verkeerd nie. Jy moet ook nie met almal saampraat wanneer hulle die waarheid verdraai net omdat jy wil hê hulle moet van jou hou nie. Jy moenie in ’n hofsaak die arm man se kant kies net omdat hy arm is en jy hom jammer kry nie.” “As jy op jou vyand se bees of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit dadelik na hom toe terugvat. As jy ’n donkie sien wat onder sy vrag gaan lê het omdat dit vir hom te swaar was, moet jy dit nie net so laat lê nie. Gaan help sy eienaar om die donkie weer op sy voete te kry, al weet jy dis iemand wat nie van jou hou nie. Jy mag ook nie in ’n hofsaak die reg verdraai net omdat iemand arm is nie. Wees baie versigtig dat jy nie in bedrog betrokke raak en onskuldige en regverdige mense deur jou getuienis ter dood veroordeel word nie. Ek, die Here, kan nooit onreg goedpraat nie. Jy moenie omkoopgeld aanvaar nie. Omkoopgeld maak ’n mens blind vir die waarheid en verongeluk die saak van die regverdige. Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, onbillik behandel nie. Jy was self ’n vreemdeling in Egipte en jy weet mos goed hoe dit is om ’n vreemdeling in ’n ander land te wees.” “Jy moet ses jaar lank op die lande saai en die oeste insamel. In die sewende jaar moet jy dit net so los en dit glad nie bewerk nie. Die arm mense van jou volk mag dan die graan eet wat vanself daar opkom. Wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Dieselfde geld ook vir jou wingerde en jou olyfboorde. Jy moet vir ses dae aangaan met jou werk. Op die sewende dag moet jy dit net so los sodat jou bees en jou donkie kan rus. Jou werksmense en die mense wat van ’n ander plek af kom, moet kan ontspan en uitrus. Doen alles wat Ek vir jou gesê het. Jy moenie ander gode aanbid nie. Ek wil selfs nie eers hoor dat jy hulle name noem nie.” “Daar is drie feeste wat jy elke jaar moet hou om my Naam groot te maak. Die eerste een is die fees van die brood wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Soos Ek tevore al vir jou gesê het, moet jy sewe dae lank net kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Jy moet die fees begin op dieselfde dag dat jy uit Egipte weg is. Dit is in die maand Abib. Elkeen wat aan die fees deelneem, moet vir My offers bring. “Die tweede een is die oesfees. Jy moet dit aan die begin van die oesseisoen hou, wanneer jy die eerste graan begin oes. “Die derde een is aan die einde van die seisoen, wanneer jy die laaste deel van die oes inbring. “By al drie hierdie feeste moet al die mansmense die Here jou God by sy blyplek kom aanbid. “Jy moet nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die vet van die dier wat jy by die fees offer, mag ook nie oud word en oorstaan tot die volgende oggend nie. Jy moet die beste gedeelte van die eerste oes wat jy insamel, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.” “Let daarop: Ek laat die man wat Ek uit die hemel na jou stuur, saam met jou gaan om jou langs die pad te beskerm. Hy sal saam met jou gaan tot by die land wat Ek vir jou eenkant hou. Jy moet hom vertrou dat hy jou sal beskerm. Jy moet luister wat hy vir jou sê. Jy moenie teen hom draai nie. Hy sal dit nie verdra as jy verkeerd met hom maak nie. Hy verteenwoordig My by jou en tree in my plek op. As jy mooi na hom luister en presies doen wat Ek van jou vra, sal Ek ook jou vyande se vyand wees en sal Ek hulle aanval wat jou wil aanval. “My verteenwoordiger sal saam met jou gaan. Hy sal jou laat veg teen die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete. Maar Ek sal hulle uitwis. Jy mag nooit voor hulle gode buig of hulle aanbid nie. Jy moet God ook nooit op dieselfde manier aanbid as wat hulle hulle gode aanbid nie. Jy moet hulle heidense godsdiens met wortel en tak uitroei. Jy moet die klippilare waar hulle hulle gode aanbid, tot op die grond toe afbreek. Jy moet net tot die Here jou God bid en tot geen ander god nie. Die Here sal dit dan goed met jou laat gaan. Hy sal vir jou kos en drinkgoed en gesondheid gee. Daar sal nie in jou land mense wees wat nie kinders kan kry nie. Dit sal ook nie gebeur dat jou kinders doodgebore word nie. Ek sal jou lank en gelukkig laat lewe. “Ek sal jou vyande laat bang word vir My. Ek sal al die volke wat met jou bots, deurmekaarmaak. Ek sal jou vyande vir jou laat vlug. Ek stuur slange voor jou uit om die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit te verdryf. Ek sal hulle nie dadelik binne die eerste jaar voor jou laat padgee nie. As dit gebeur, kan die land onbewoonbaar raak en die wilde diere alles oorneem. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou laat padgee soos jou getalle al meer word en jy al meer plek nodig het om te bly, totdat jy uiteindelik die hele land kan oorneem. Ek sal maak dat jou grense loop van die Rietsee af tot by die See van die Filistyne, van die woestyn af tot by die groot rivier. Ek sal almal wat daar woon, onder jou stel. Jy kan hulle voor jou uit die land wegjaag. Jy mag nie enige ooreenkoms met hulle sluit nie. Ook nie met hulle gode mag jy enige ooreenkoms maak nie. Hulle mag nie in die land bly woon as jy eers daar ingetrek het nie. As hulle daar aanbly, gaan hulle jou verseker op sleeptou neem en verlei om aan My ongehoorsaam te wees. Jy gaan dan in die strik trap om hulle gode te begin aanbid.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy en Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers uit Israel moet teen die berg uitklim en hier na die Here toe kom. Julle moet nie te naby aan My kom nie, maar op ’n afstand bly staan. Van daar af moet julle afbuig na die grond toe en My aanbid. Terwyl die ander net daar bly, moet Moses dan alleen nader kom na die Here toe. Die volk self moet glad nie op die berg kom nie.” Moses het toe na die volk toe gegaan en vir hulle alles gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy het ook vir hulle die reëls gegee wat die Here vir hom gegee het. Die hele volk het toe geantwoord asof hulle uit een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons verwag.” Moses het ook alles neergeskryf wat die Here vir hom gesê het. Hy het vroeg die volgende oggend ’n plek aan die voet van die berg gaan bou waarop hulle vir die Here kon offer. Hy het ook vir elkeen van die twaalf families ’n regop klip rondom die altaar ingeplant. Hy het toe twaalf jong Israeliete laat kom. Hulle het offers wat verbrand word en offers wat voor die Here geëet word, vir die Here gebring. Hy het van die bloed van die diere wat geoffer is, in bakke opgevang. Van die bloed het hy oor die offerplek uitgegooi. Terwyl die volk na hom staan en luister, het Moses vir hulle die reëls voorgelees wat hy neergeskryf het. Daarin het die Here gesê wat Hy verwag van mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het. Hulle het toe weer ’n keer gesê: “Ons sal gehoorsaam wees. Ons sal alles doen wat die Here van ons verwag.” Moses het van die bloed in die bakke oor die volk gesprinkel terwyl hy sê: “In ooreenstemming met die reëls wat ek vir julle voorgelees het, sluit die Here nou met hierdie bloed formeel ’n ooreenkoms met julle.” Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers van Israel het toe teen die berg uitgeklim. Hulle het die God van Israel met hulle eie oë gesien. Hy het op iets gestaan wat soos ’n vloer lyk wat met saffiersteen uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug. Hierdie beroemde leiers het God gesien. Hy het nie iets aan hulle gedoen toe hulle Hom gesien het nie. God en hulle het selfs daar saam geëet en gedrink. Die Here het vir Moses gesê: “Klim verder teen die berg uit na My toe. Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek al die reëls en regulasies neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee.” Moses en sy helper Josua het toe gereedgemaak. Moses het verder teen die berg uitgeklim. Voor hy van hulle af weg is, het Moses vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons tot ons na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As daar iets dringends is, moet julle na hulle toe kom.” Terwyl Moses verder teen die berg uitklim, het die donker wolk weer afgesak en oor die berg gaan hang. [16-17] Die Here was in al sy grootheid op die Sinaiberg. Vir die Israeliete onder die berg het dit gelyk na ’n vuur wat op die top van die berg brand terwyl die Here daar was. Die donker wolk het ses dae lank oor die berg bly hang. Op die sewende dag het die Here uit die wolk gepraat. Hy het Moses nader geroep. *** Moses het verder teen die berg uitgeklim en in die wolk verdwyn. Hy het vir altesaam 40 dae daar op die berg gebly. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet vir My geskenke na my blyplek toe bring. Neem die bydrae van almal wat graag wil gee. Die geskenke kan van goud, silwer of brons gemaak wees; van blou, pers of bloedrooi wol, van linne, bokhaar, rooigekleurde velle of gebreide velle, of van doringhout. Dit kan olie vir lampe wees, of balsemgom wat gebruik kan word in salfolie of in geurige offers van wierook. Dit kan ook onikssteen of ander halfedelstene wees. Daarmee kan die klere en die sak versier word wat die leier van die mans dra wanneer hy by my blyplek vir My offers bring. Elkeen kan self kies wat hy wil gee. Enigiets wat hier genoem is, moet julle aanvaar as ’n geskenk wat vir My gebring word.” “Israel moet vir My ’n tent maak waarin Ek tussen hulle kan kom bly. Dit moet gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek hier op die berg vir jou wys. Julle moet ook al die verskillende goed maak wat by die tent moet kom.” “Julle moet ’n ark van akasiahout maak. Dit moet 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed en hoog wees. Dit moet aan die binnekant en aan die buitekant met suiwer goud oorgetrek word. Aan die buitekant moet dit ook ’n versierde goue rand hê. Jy moet vier goue ringe maak waardeur drastokke gesteek kan word. Die ringe moet aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit word. Daar moet dus twee stelle ringe aan die voorkant en twee aan die agterkant wees. Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe kan pas. Trek hulle ook met goud oor. Steek dan die drastokke deur die ringe van die ark sodat julle dit kan dra. Hulle moet altyd in die ringe bly. Julle moet dit nie weer daar uithaal nie. Die plat klippe wat Ek vir jou sal gee, sal die getuienis van ons ooreenkoms wees. Hulle moet binne-in die ark gebêre word. “Jy moet ook ’n deksel maak wat op die ark pas. Dit moet net so groot soos die ark wees: 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. Dit moet van suiwer goud gemaak word. Maak ook twee beelde van hemelse figure met vlerke wat uit goud gevorm is. Hulle moet bo-op die deksel vasgesit word met hulle gesigte na mekaar toe. Hulle vlerke moet oor die deksel uitgesprei wees asof hulle dit beskerm. Hulle moet afkyk op die deksel. Jy moet die getuienis van die ooreenkoms wat Ek aan jou gaan gee, binne-in die ark sit. Dan moet jy die deksel bo-op die ark pas. Ek sal jou by daardie ark ontmoet. Ek sal daar met jou van die deksel af praat. Ek sal van tussen die figure met die vlerke op die ark vir jou alles sê wat Ek van die Israeliete verwag.” “Jy moet ook ’n tafel van akasiahout maak. Dit moet 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed wees. Dit moet 70 sentimeter hoog wees. Trek dit met suiwer goud oor en sit ’n goue rand reg rondom daaraan vas. Slaan dan ’n lys reg rondom die tafel vas en sit ook daaraan ’n goue rand vas. Jy moet ook vir die tafel ringe van goud maak soos vir die ark waardeur drastokke gesteek kan word. Die ringe moet aan die lang kante op die hoeke net onder die lys vasgesit word. Twee stokke moet daardeur gesteek kan word om die tafel te dra. Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe pas. Hulle moet ook met goud oorgetrek word. Die tafel kan aan hulle gedra word. Maak ook skottels en bakke waarin die geurige wierook kan brand. Maak ook houers en bakke van suiwer goud om vir die offers van wyn en olie te gebruik. Julle moet sorg dat daar altyd brood neergesit word wat vir My geoffer word waar Ek dit kan sien.” “Jy moet ook ’n goue ligstaander maak. Sy voetstuk en steel moet uit een stuk goud gevorm word. Dit moet met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier wees. Daar moet ses arms uit die steel kom, drie aan die een kant en drie aan die ander kant. Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam vertak, moet daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare wees. Die steel self moet vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare aan die bokant hê. Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, moet daar ’n goue blomknop vas wees. Die arms en blomknoppe moet alles uit een stuk goud gevorm wees. “Maak ook sewe olielampe vir die staander. Jy moet dit op so ’n manier daaraan vassit dat die lig van die lampe na die voorkant van die staander skyn. Ook die tangetjie waarmee jy die vlammetjies van die lampe doodknyp en die houers met die olie en die pit in, moet van suiwer goud gemaak word. Daar sal 34 kilogram suiwer goud nodig wees om die staander en al sy dele te maak. Jy moet sorg dat dit alles gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek vir jou op die berg gewys het.” “Jy moet vir die tent ’n dak maak wat uit drie lae materiaal bestaan. Die onderste laag word van tien stukke materiaal gemaak. Die materiaal moet fyn linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is en waarop figure met vlerke geborduur is. Elkeen van hierdie tien stukke moet presies ewe groot wees. Elkeen moet veertien meter lank en twee meter breed wees. Daaruit moet jy twee identiese stelle maak. Vir elkeen sit jy vyf stukke materiaal op mekaar en werk hulle op die lengte aan die kant vas. [4-5] Jy moet blou lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vaswerk. Daar moet dus 50 lussies wees wat presies teenoor mekaar is wanneer die twee stelle op mekaar gepas word. *** Maak ook 50 goue hakies om deur die lussies te haak sodat die twee velle aan mekaar vasgehaak kan word om een dubbelvel te vorm. Dit is dan die onderste laag van die tent se dak.” “Maak ’n tweede laag vir die dak van bokhaarmateriaal om bo-oor die eerste laag te trek. Hiervoor is elf stukke materiaal nodig. Al elf stukke moet presies ewe groot wees. Elkeen moet vyftien meter lank en twee meter breed wees. Maak weer twee stelle op. Vir die een stel werk jy vyf stukke materiaal aan mekaar vas. Vir die ander een gebruik jy ses stukke. Die sesde stuk word dubbel gevou. Dit sal by die voorkant van die tent kom. Werk lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle sodat daar 50 lussies is wat teenoor mekaar is wanneer die twee stelle op mekaar gesit word. Maak ook 50 koperhakies om deur die lussies te haak sodat die twee velle aan mekaar vasgehaak kan word om een dubbelvel te maak vir die tweede laag van die tent se dak. [12-13] Die gedeelte van hierdie laag wat groter is as die een onder hom, moet so gespan word dat dit ewe veel aan albei die lang kante van die tent oorhang.” *** “Die boonste laag van die dak moet van gelooide ramsvel gemaak word met gebreide vel oor.” “Jy moet ’n raam van akasiahout vir die tent maak. Die raam is saamgestel uit houtpanele wat elkeen vyf meter hoog en 75 sentimeter breed is. Aan elke paneel moet daar twee laspunte wees, sodat die een paneel aan die volgende een gelas kan word. Al die panele van die tent moet eenders lyk. Maak twintig panele vir die suidelike muur van die tent. Jy moet ook 40 voetstukke van silwer maak om onder die panele te sit. “ [20-21] Die muur van die tent aan die oorkant wat noord front, bestaan ook uit twintig panele met 40 voetstukke, twee onder elke paneel. *** Vir die koppenent aan die westekant moet daar ses gewone panele wees, [23-24] en ook twee versterkte hoekpanele. *** Hierdie muur bestaan dus uit agt panele met sestien silwervoetstukke. “Jy moet ook dwarslatte van akasiahout maak wat die panele bymekaar kan hou. Daar moet vyf latte vir elke muur wees: vyf vir die twee lang kante en vyf vir die muur aan die endkant. Die middelste dwarslat moet op halfhoogte dwarsoor die panele van punt tot punt loop. Trek die panele met goud oor. Sit goue ringe aan hulle vas waardeur die dwarslatte gesteek kan word. Trek ook die dwarslatte met goud oor. Jy moet die tent maak sodat dit presies lyk soos Ek dit vir jou op die berg gewys het.” “Jy moet ook ’n gordyn maak om die tent in twee te verdeel. Dit moet van geweefde linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef is en waarop figure met vlerke geborduur is. Hang die gordyn aan vier regop akasiahoutpale wat met goud oorgetrek is en waaraan daar hakies is. Elke paal moet ’n silwervoetstuk hê. Hang die gordyn aan die hakies op sodat dit die deel van die tent wat vir My eenkant gehou word, van die ander deel kan afskort. Kom sit dan die ark met die bewys van die ooreenkoms in, in hierdie afgesonderde deel agter die gordyn neer. Sit ook sy deksel op. “Kom sit ook die tafel en die ligstaander teenoor mekaar in die ander gedeelte voor die gordyn neer. Die tafel moet teen die noordelike muur staan en die staander vir die lampies teen die suidelike muur. “Die ander deel van die tent waar daar nie panele is nie, is die ingang van die tent. Daarvoor moet jy ’n gordyn maak om voor die ingang te hang. Dit moet van geweefde materiaal wees met blou, pers en bloedrooi wol en met borduursel op. Dit moet opgehang word met goue hakies aan vyf regop pale wat van akasiahout gemaak is en met goud oorgetrek is. Die regop pale moet op voetstukke staan wat van koper gemaak is.” “Jy moet ’n staander van akasiahout maak waarop die offers by die tent gebring kan word. Dit word die altaar genoem. Dit moet vierkantig wees: twee en ’n half meter breed aan elke kant en een en ’n half meter hoog. Op elke hoek moet jy ’n uitsteeksel vassit wat soos die horings van ’n bees lyk. Jy moet die hele altaar met koper oortrek. Die gereedskap wat by die altaar gebruik word, moet ook alles van koper gemaak word. Die gereedskap is die panne waarin die as uitgekrap word, die skoppe, die komme, die vurke en die panne waarin die vuurkole geskep word. Maak ook ’n rooster van koper vir die altaar. Sit vier koperringe daaraan vas waardeur drastokke vir die altaar gesteek kan word. Sit die rooster aan die boonste helfte van die altaar vas sodat dit tot bo by sy rand kom. Sit ook die koperringe op die hoeke van die altaar vas. Maak drastokke van akasiahout vir die altaar en trek dit oor met koper. Wanneer die altaar gedra moet word, moet die drahoute deur daardie ringe gesteek word sodat vier mense, twee aan elke kant, dit kan dra. Soos Ek vir jou op die berg gewys het, is die altaar ’n houtkis wat binne hol is.” “Jy moet vir die tent ook ’n binnehof maak. Dit is ’n vierkantige lapa met fyn linnemure. Aan die suidekant moet dit 44 meter lank wees. Die materiaal moet aan hakies en horisontale gordynstokke van silwer hang. Die gordynstokke is vas bo-op regop pale. Daar is twintig pale en elkeen staan op ’n kopervoetstuk. Aan die teenoorstaande noordekant is die muur presies net so lank. Daar is ook net soveel regop pale op kopervoetstukke as aan die eerste kant. Die linnemuur hang ook aan silwerhakies. Aan die westekant van die binnehof moet die afskorting 23 meter lank wees. Daar moet tien regop pale op koper voetstukke wees. “ Aan die oostekant, die kant waar die son opkom, moet die binnehof ook 23  meter lank wees. Daar moet ’n opening daar wees, [14-15] met tien meter muur aan elke kant van die ingang. Die linnemure aan al twee kante van die opening hang ook elkeen aan drie regop pale wat op voetstukke staan. *** Vir die ingang wat na die binnekant van die lapa loop, moet jy ’n gordyn maak uit geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit hang aan vier regop pale wat op voetstukke staan. Al die regop pale wat reg rondom die binnehof gebruik word, moet met silwergordynstokke aan mekaar verbind word. Die stokke moet silwerhakies hê waaraan die linnemure opgehang kan word. Elke paal staan op sy eie kopervoetstuk. Die binnehof is dus 44 by 23 meter groot en die geweefde materiaal aan die kante is twee en ’n half meter hoog en hang aan pale op kopervoetstukke. “ Soos al die gereedskap wat binne-in die tent gebruik word, moet die tentpenne waarmee die mure van die afskorting geanker word, ook van koper gemaak wees.” “Jy moet vir die Israeliete sê om vir jou suiwer olyfolie te bring. Jy moet dit gebruik om die lampe in die tent aan die brand te hou. Die lampe op die ligstaander in die tent moet dwarsdeur die nag bly brand. Aäron en sy seuns wat saam met hom in die tent werk, moet daarna kyk en sorg dat dit altyd brand in die deel voor die gordyn waaragter die ark met die bewys van die ooreenkoms is. Dit is ’n vaste reël in Israel wat deur elke daaropvolgende geslag gehoorsaam moet word.” “Roep jou broer Aäron en sy vier seuns, Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Laat hulle na jou toe kom. Sê vir hulle dit is hulle taak om in die tent te werk. Hulle is die Here se priesters. “ Laat maak vir Aäron waardige en mooi klere wat hom van die ander kan onderskei. Jy moet mense gebruik aan wie Ek uitsonderlike talente gegee het om die klere vir Aäron en sy seuns te maak. Die klere wat hulle vir Aäron maak, moet bestaan uit ’n sak wat oor sy bors hang, ’n stuk materiaal wat oor sy skouers kom, ’n mantel wat agter oor sy skouers afhang, ’n hemp, ’n hoed vir sy kop en ’n gordel om om sy heupe te sit. Dit is spesiale klere wat Aäron en sy seuns moet dra wanneer hulle in die tent kom werk. Die mense wat die klere maak, moet geweefde linne gebruik. Hulle moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol daar inborduur.” “Die deel wat oor die skouers kom, moet van geweefde linne gemaak word. Daar moet op ’n kunstige manier met gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol daarop geborduur word. Dit moet twee bande hê wat oor die skouers kom. Die gordel waarmee dit om die heupe vasgemaak word, moet op dieselfde manier gemaak word met geborduurde gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol. Vat dan twee oniksstene en graveer die name van die twaalf seuns van Jakob in die volgorde waarin hulle gebore is daarop. Daar moet ses name op die een steen kom en die res op die ander steen. Soos ’n graveerkunstenaar ’n seëlring graveer, moet jy die name op die twee stene laat graveer. Die twee stene moet dan in goud gemonteer word. Werk die twee stene vas op die twee skouerbande van die stuk wat oor die skouers kom. Dit verteenwoordig die Israeliete. Wanneer Aäron met hulle name op sy skouers voor die Here kom, sal God aan al die Israeliete dink. Die monterings waarin die stene vasgesit word, moet van goud gemaak word. Daar moet ook twee kettinkies van suiwer goud wees wat inmekaar gevleg is. Jy moet hulle aan die twee monterings vassit.” “Die sak wat voor sy bors hang, moet ook ’n kunswerk wees. Dit moet net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne wees. Dit moet geborduur word met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol. Dit moet gebruik word wanneer hy moet sê wat die Here oor iets besluit het. Die materiaal moet dubbel gevou word om ’n sak te vorm. Dit is vierkantig: 25 sentimeter lank en breed. Jy moet hierop twaalf verskillende soorte halfedelstene vassit. Rangskik hulle in vier rye van drie elk. In die eerste ry kom karneool, topaas en smarag; in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis; in die derde hiasint, agaat en ametis, en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit word vasgesit in ’n montering wat van goud gemaak is. Op elkeen van die twaalf stene moet die naam van een van die twaalf families gegraveer wees, soos op ’n seëlring. Maak vir die sak goue kettinkies wat soos tou gevleg is. “ Maak ook twee goue ringe. Sit die ringe vas aan die twee boonste hoeke van die sak, haak die kettinkies daardeur en werk die punte daarvan aan die twee monterings vas wat op die bande van die ander stuk is wat oor die skouers kom. Maak nog twee ander goue ringe en werk hulle aan die onderste twee hoeke van die sak vas, aan die binnekant waar dit op die deel rus wat oor die skouers kom. Maak nog twee goue ringe en werk hulle laag af vas aan die bande van die deel wat oor skouers kom wat met die gordel om die heupe vasgetrek word. “Die onderste twee ringe van die sak word dan met ’n blou toutjie vasgesit aan die ringe van die deel wat oor die skouers kom. Dit sal keer dat dit afsak tot onder die gordel. So sal Aäron altyd die name van die families van Israel wat op die sak voor sy bors vasgesit is, aan sy lyf dra wanneer hy in die tent ingaan om hulle name voor die Here te bring. Jy moet die ‘urim’ en ‘tummim’ waarmee God se besluit bepaal word, in die sak sit wat hy oor sy bors dra. Aäron moet dit altyd aanhê wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron God se besluite altyd aan sy lyf.” “Daar moet ook ’n deel gemaak word wat nie moue het nie. Dit kom bo-oor die deel wat oor die skouers gehang word. Dit word van blou materiaal gemaak. Dit moet ’n gat in die middel hê waardeur die kop gesteek kan word. Hierdie opening moet omgeboor en versterk wees sodat dit nie kan skeur nie. [33-34] Al om die soom van hierdie deel moet jy om die beurt blou, pers en bloedrooi tosseltjies vaswerk, afgewissel met goue klokkies wat reg rondom die hele kledingstuk gaan. *** Aäron moet dit aanhê wanneer hy sy werk in die tent kom doen. Wanneer hy in die tent ingaan na die Here toe en wanneer hy weer daar uitkom, sal die klokkies lui. Hy sal dan niks kan oorkom nie. “Maak ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop: ‘Vir die Here alleen.’ Bind die goue blom met ’n blou toutjie aan die voorkant van sy hoed vas. Aäron moet dit altyd op sy voorkop dra sodat die Israeliete in die Here se goeie boekies kan bly. Dit is ’n teken op Aäron se voorkop dat hy verantwoordelik gehou sal word as Israel verkeerd doen en nie aan die Here getrou is nie. Jy moet die hemp vir Aäron van fyn linne maak. Die hoed op sy kop moet ook daarvan gemaak word. Die gordel wat hy om sy heupe vassit, moet met borduurwerk versier wees.” “Jy moet ook vir Aäron se seuns klere laat maak vir hulle werk by die tent. Maak vir hulle gordels en hoede wat hulle van ander mense kan onderskei. Laat Aäron, jou broer, en sy seuns wat saam met hom is, hierdie klere aantrek. Gooi olie uit op hulle koppe en stel hulle aan as die mense wat vir My by die tent werk. Stel hulle aan My voor en bevestig hulle in hulle ampswerk as my priesters. Maak ook vir hulle broeke om onder hulle klere te dra sodat hulle van hulle bobene af tot by hulle heupe toe is. Aäron en sy seuns moet dit aanhê wanneer hulle na die tent toe kom of na die altaar gaan om daar te werk. As hulle dit nie aanhet wanneer hulle daar werk nie, begaan hulle ’n oortreding waarvoor hulle met die dood gestraf kan word. Dit moet altyd die reël vir Aäron en sy nageslag wees wanneer hulle vir My werk.” “Jy moet soos volg maak wanneer jy hulle aanstel om vir My te werk. Kry vir jou ’n jong bul en twee ramme wat nie enige foute het nie. Bak ’n brood met koringmeel en ’n ronde brood waaroor olyfolie gesmeer word en beskuitjies wat in olie gedoop word. Jy moet glad nie suurdeeg gebruik wanneer jy dit bak nie. Sit die brode in ’n mandjie en bring dit saam met die bul en die twee ramme na die tent toe. “Laat Aäron en sy seuns by die ingang van die tent kom staan. Hulle moet hulleself bad en gereedmaak om voor die Here te kom. Vat die klere wat jy vir Aäron laat maak het en laat hy die hemp aantrek, die deel oorgooi wat oor sy skouers kom, die deel omhang wat daar bo-oor kom, en die sak voor sy bors hang. Hy moet dan die deel wat van sy skouers af hang, met die gordel vastrek. Sit die hoed op sy kop en sit die goue blom daaraan vas waarop gegraveer is: ‘Vir die Here alleen.’ Gooi lekkerruikolie op sy kop uit en stel hom in sy werk aan. “Laat sy seuns nader staan. Hulle moet ook hulle spesiale klere aantrek. Hang vir Aäron en sy seuns serpe om en laat hulle hulle hoede opsit. Hulle moet altyd hierdie klere dra wanneer hulle hulle werk by die tent kom doen.” “Stel dan Aäron en sy seuns in hulle diens aan en maak so: bring die bul na die tent toe. Laat Aäron en sy seuns nader kom sodat hulle hul hande op die bul se kop kan sit om aan te dui dat die bul vir hulle geoffer gaan word. Slag dan die bul daar by die ingang van die tent waar Ek is. Smeer met jou vinger van die bloed van die bul aan die horings van die altaar. Gooi die res van sy bloed teen die onderkant van die altaar uit. “Verbrand dan op die altaar die hele vetlaag wat oor die bul se binnegoed is, sy twee niere met die vet daaroor en die lewervet. Die bul se vleis, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp met vuur gaan verbrand. Dit is die eerste offer. Dit is ’n offer vir die sonde van die priesters.” “Bring dan een van die ramme nader. Aäron en sy seuns moet hulle hande ook op sy kop sit. Sny dit keelaf en sprinkel sy bloed van alkante oor die altaar. Sny die ram in verskillende stukke op. Was die binnegoed en pote met water af en sit dit neer by die kop en die stukke vleis wat jy opgesny het. Verbrand dit dan alles op die altaar. Dit is ’n offer wat vir die Here in vuur verbrand word. Hy hou baie daarvan.” “Bring ook die tweede ram nader. Aäron en sy seuns sit weer hulle hande op die ram se kop. Dan slag jy die ram en smeer van sy bloed aan Aäron en sy seuns se regteroorlelle, hulle regterduime en hulle regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is alkante teen die altaar. Meng van die bloed op die altaar met die lekkerruikolie waarmee jy Aäron in sy werk bevestig het. Sprinkel dit oor Aäron en sy seuns en oor hulle klere. Dit dui aan dat hy en sy seuns en hulle klere vir die Here afgesonder is. “Die tweede ram word gebruik om die werkers by die tent vir hulle werk aan te stel. Sny daarvoor die ram se vet uit, ook sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad. Haal uit die broodmandjie wat voor die Here staan, die ronde brood, die brood wat met olie gesmeer is en die beskuit. Laat Aäron en sy seuns hulle hande na jou toe uithou en sit die brood en die vet in hulle hande. Hulle moet dit dan na die Here toe uithou en aan Hom opdra. Vat dit weer uit hulle hande uit en verbrand alles op die altaar saam met die offer van die eerste ram. Dit is ’n offer wat met vuur vir die Here verbrand word. Hy hou baie daarvan.” “Die bors van die ram wat jy gebruik het om Aäron-hulle aan te stel mag jy vir jouself vat. Jy moet dit eers na die Here toe uithou en dit aan Hom opdra. Daarna kan jy dit vat. Die bors en die boud van die offer wat gebruik word om Aäron-hulle te bevestig moet eenkant gesit word. Dit word na die Here uitgehou en aan Hom opgedra. Daarna kry Aäron en sy seuns dit om te eet. Dit is ’n vaste reël vir die Israeliete dat die bors en die boud van hulle offer wat hulle vir die Here bring om van te eet, eers aan Hom opgedra sal word en dan vir Aäron en sy seuns gegee sal word om te eet.” “Aäron se opvolger moet sy klere kry wanneer hy na sy dood in sy plek aangestel word en in sy dienswerk bevestig word. Die seun wat hom as priester opvolg, moet dit sewe dae lank aanhou wanneer hy met sy werk begin en na die tent kom om voor die Here te kom.” “Maak die vleis van die ram wat vir die bevestiging gebruik is, gaar in ’n plek wat daarvoor eenkant ingerig is. Aäron en sy seuns moet die gaar vleis en die brood wat in die mandjie oor is, by die ingang van die tent eet. Net hulle mag van die offer eet wat gebruik is vir hulle sonde toe hulle in hulle dienswerk aangestel en aan God opgedra is. Iemand wat nie ook by die tent werk nie, mag glad nie daarvan eet nie. Hy is nie vir die werk van God afgesonder nie. “Enigiets wat nog die volgende oggend oor is van die vleis of brood wat vir die bevestiging gebruik is, moet in die vuur verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God gegee.” “Daar is nog verder die volgende aanwysings wanneer jy Aäron en sy seuns bevestig. Dit hou sewe dae lank aan. Offer elke dag ’n bul om vir hulle sonde te betaal. Daarmee word die sonde weggeneem en kom die sake weer reg met God. Gooi olie oor die altaar uit om dit aan die Here te wy. Vir sewe dae moet jy elke dag offers by die altaar bring om vrede te bring tussen julle en God. Dra die altaar aan die Here op. Die altaar sal dan aan God alleen gewy wees. Enigeen wat dan daaraan raak, sal ook aan God gewy moet word. “Jy moet so maak by die altaar: jy moet elke dag twee lammers offer wat elkeen ’n jaar oud is. Die een word vroeg in die oggend en die ander laat teen die aand geoffer. Saam met die lam in die oggend offer jy een kilogram meel wat met een liter suiwer olie en wyn gemeng is. Die tweede lam word teen die aand geoffer saam met ’n offer van meel, olie en wyn wat dieselfde is as dié in die oggend. Dit is ’n offer wat verbrand word. Die Here hou baie daarvan.” “Oor die jare moet daar altyd vir My ’n offer by die ingang van die tent verbrand word. Ek sal julle daar by die tent ontmoet en daar met julle gesels. Daar sal Ek en Israel mekaar leer ken en sal dit vir hulle duidelik word hoe groot en belangrik Ek is. Ek sal die tent van ontmoeting en die altaar die plekke maak wat vir My eenkant gesit is. Ek sal Aäron en sy seuns uitsonder van die res en hulle vir My as my priesters laat werk. My tent sal tussen die Israeliete staan. Ek sal hulle God wees wat tussen hulle woon. Hulle sal erken dat dit Ek was, die Here hulle God, wat hulle uit Egipte laat wegtrek het om saam met hulle te woon. Ek is die Here hulle God.” “Maak ook ’n kleiner staander as ’n altaartjie waarop jy geurige wierook kan brand. Maak dit van akasiahout. Dit moet vierkantig wees: 45 sentimeter breed en lank en 90 sentimeter hoog. Dit moet op die hoeke arms hê wat soos horings lyk. Die plat vlak bo-op en sy vier sye sowel as die horings moet jy met suiwer goud oortrek. Sit ook ’n randjie van goud reg rondom. Maak draringe van goud vir die altaar. Sit hulle aan die twee teenoorstaande kante vas, net onder die randjie, om die drastokke daardeur te kan sit waaraan die altaar gedra word. Maak die drastokke van akasiahout en trek dit oor met goud. Gaan sit die altaar voor die gordyn neer waaragter die ark met die bewys van die ooreenkoms en sy deksel is, die plek waar Ek jou ontmoet. “Elke oggend wanneer Aäron die lampe kom uitdoof, moet hy geurige wierook op die altaar aan die brand steek. Ook wanneer hy teen die aand se kant die lampe kom aansteek, moet hy wierook daarop brand. Daar moet deur die jare altyd wierook voor die Here gebrand word. Geen ander soort offer mag op hierdie altaar geoffer word nie. Daar mag nie vreemde goed op gebrand word nie. Julle mag ook nooit ’n offer van vleis daarop verbrand of offers daarop bring waarvan julle self ’n deel kan eet nie. Daar mag ook nie iets daarop uitgegooi word om dit te offer nie. Net een keer per jaar, op die dag wat julle sake met God reggestel word, mag Aäron van die bloed van die sondeoffer wat op daardie dag gebring word, aan die altaar se horings kom smeer om daarop vrede vir julle te maak. Almal moet onthou dat dit ’n altaar is wat net vir die wierookoffer gebruik mag word. Dit behoort aan God alleen.” Die Here het ook verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm. Die geld wat jy op hierdie manier van die Israeliete kry, moet jy gebruik om te betaal vir alles wat daar by my tent gedoen moet word. Ek sal onthou dat die Israeliete betaal het en dat daar nie rampe oor hulle moet kom wanneer die volk getel word nie.” Die Here het nog verder vir Moses gesê: “Maak ’n bak uit koper met ’n voetstuk uit koper om by te gaan was. Sit dit tussen die tent en die altaar en gooi dit vol water. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daar was met water uit die bak. Hulle moet dit elke keer doen wanneer hulle in die tent gaan werk of wanneer hulle by die altaar offers gaan verbrand. Dit is ’n vaste reël vir Aäron en almal wat hom opvolg. Hulle moet voor die tyd eers hulle hande en hulle voete was voor hulle hulle werk by die tent gaan doen. As hulle dit nie doen nie, kan dit hulle lewe kos.” Die Here het ook nog vir Moses gesê: [23-24] “Kry die volgende bymekaar vir ’n mengsel van salf en olie: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes, 500 dele kassie, en vier liter olyfolie. *** Meng dit alles soos ’n apteker en maak ’n mengsel van salfolie vir die tent. Gooi daarvan uit op die tent, op die ark met die bewys van ons ooreenkoms, oor die tafel waarop die brode gesit word saam met alles wat daarby staan, oor die ligstaander en alles wat daarby hoort, oor die altaartjie waarop die wierook gebrand word, oor die altaar buite waarop die offers verbrand word saam met sy gereedskap en oor die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulle was. Dra dit alles aan die Here op met die salfolie sodat dit alles aan die Here alleen gewy is. Elkeen wat aan hierdie voorwerpe raak, moet self aan die Here gewy wees. Jy moet ook Aäron en sy seuns daarmee salf sodat hulle aan My gewy kan wees om my priesters te wees. “Sê vir die Israeliete dat hierdie mengsel van olie vir hulle en vir alle geslagte wat kom, iets is wat uitsluitlik bedoel is om mense en dinge aan God te wy. Dit mag nie sommer vir ’n mens gebruik word nie. Julle mag ook nie die voorskrif gebruik om vir julleself salfolie te meng nie. Die salfolie is uitsluitlik bedoel om dinge vir die Here af te sonder. Julle moet respek hê daarvoor en dit vir niks anders gebruik nie. Enigeen wat die resep vir iets anders gebruik, of die mengsel op iets of iemand gebruik wat nie aan die Here en sy tent behoort nie, moet uit die volk weggejaag word.” Die Here het ook vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede van die volgende speserye af: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. Meng dit soos ’n apteker ’n wierookmengsel maak. Meng dit met sout dat dit suiwer kan wees en aan My gewy kan word. Maal dit tot ’n fyn poeier. Strooi daarvan voor die ark met die bewyse van ons ooreenkoms in daardie tent waar Ek en jy mekaar ontmoet. Julle moet dit respekteer as iets wat baie spesiaal is en net vir my tent bedoel is. Julle mag nie hierdie resep gebruik om ook vir julleself dieselfde mengsel van wierook te maak nie. Dit is uitsluitlik vir die Here en sy werk by die tent bedoel. Die man wat so iets vir homself maak omdat dit so lekker ruik, moet van julle af weggejaag word.” Die Here het verder met Moses gepraat: “Ek het Besaleël gekies om die voorman te wees wanneer die tent gemaak word. Hy is Uri se seun. Sy oupa is Gur. Hulle is uit die stam van Juda. My Gees gee vir hom die verstand en die insig, die kennis en die vaardigheid om dinge te ontwerp en dit dan van goud of silwer of koper te maak. Hy kan met edelstene werk en houtsnywerk doen en enige kunswerk maak. Ek het ook Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan gekies om saam met hom te werk. “Ek het aan verskillende mans wat fluks is met hulle hande die vaardigheid gegee om die tent te maak soos Ek vir jou beduie het. Hulle sal die tent maak waar Ek en julle mekaar gaan ontmoet. Hulle sal ook die ark maak waarin die bewys van ons ooreenkoms gehou moet word, die deksel wat bo-op pas, die gereedskap wat in die tent gebruik word, die tafel waarop die brode uitgestal word, saam met sy toerusting, die ligstaander wat lig gee in die tent en alles wat daarvoor nodig is, die kleiner altaar vir die wierook en die groot altaar buite waarop die offers verbrand moet word, saam met sy gereedskap, die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulleself was voor hulle in die tent gaan werk, die klere wat hulle moet dra wanneer hulle by die tent werk, Aäron se klere en die klere wat sy seuns moet dra, ook die salfolie en die wierookmengsel - alles wat Ek gesê het jy moet maak.” Verder het die Here ook nog vir Moses gesê om vir die Israeliete te sê: “Die belangrikste van alles is my rusdae. Julle moet my rusdae hou. Die rusdag is die belangrikste teken oor al die geslagte heen dat daar ’n ooreenkoms tussen My en julle bestaan. Dit is die teken dat Ek die Here is en dat Ek julle my volk gemaak het. Julle moet altyd op die sewende dag rus. Julle doen dit ter wille van My. Die persoon wat hom nie aan die rusdag steur nie, moet doodgemaak word. Iemand wat op die rusdag maar net aangaan met sy werk asof daar nie ’n ooreenkoms met My is nie, hoort nie by my volk nie. Hy moet beslis weggejaag word. Julle kan ses dae lank aangaan met julle werk. Op die sewende dag moet daar uit eerbied vir die Here heeltemal opgehou word met die werk. As iemand moedswillig is en maar net eenvoudig aangaan met sy werk, moet hy doodgemaak word. “ Vir die Israeliete en vir hulle nageslag is die rusdag ’n ooreenkoms met die Here wat vir altyd staan. Daarom moet hulle sorg dat hulle dit altyd hou. Dis vir altyd ’n teken dat daar ’n ooreenkoms tussen My en Israel is. Die Here het die hemel en die aarde in ses dae gemaak. Hy het op die sewende dag opgehou om weer asem te skep en uit te rus.” Toe die Here op Sinaiberg klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom die twee plat klippe gegee. Die klippe is die bewys van sy ooreenkoms met Israel. Die Here het self op die klippe die reëls vir sy ooreenkoms neergeskryf. Toe Moses so lank wegbly en nie dadelik weer van die berg af terugkom nie, het die volk by Aäron bymekaargekom. Hulle sê toe vir hom: “Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het nie. Hy het ons uit Egipte gelei, maar nou is hy skoonveld. Jy moet vir ons ’n ander god kry wat ons verder kan lei.” Aäron sê toe vir hulle: “Kry by julle vroue en julle seuns en dogters die goue oorringe wat hulle aanhet en bring dit vir my.” Hulle het die oorringe gevat en vir Aäron gebring. Hy het dit by hulle gekry en daarvan ’n beeld van ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte laat wegtrek het.” Toe Aäron sien wat hulle doen, het hy ook nog ’n altaar vir offers daar by die beeld gebou. Hy het gesê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here!” Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dadelik teruggaan! Jou volk wat jy uit Egipte weggelei het, is besig om lelike dinge te doen. Hulle was baie vinnig om te vergeet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. Hulle het sowaar vir hulle ’n beeld van ’n kalf gaan maak. Hulle aanbid die kalf en bring offers daarvoor. Hulle sê die kalf is Israel se god wat Israel uit Egipte laat wegkom het. Ek het sommer aan hulle gesien dat hulle ’n volk is wat hulle eie kop gaan volg. Los My nou uit dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitroei. Moenie jou bekommer nie, want Ek sal jou ’n groot volk laat word.” Moses het toe by die Here sy God begin mooipraat: “Here, hoekom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag uit Egipte laat wegtrek het? Waarom sal U nou die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle met ’n slim plan uitgevang. Hy het hulle laat trek sodat Hy hulle daar by die berg kan gaan doodmaak. Hy het hulle van die aarde afgevee. Laat asseblief tog u woede bedaar. Moet asseblief tog nie hierdie vreeslike ding met u volk laat gebeur nie. Dink ’n bietjie aan u kinders Abraham, Isak en Israel. U het mos plegtig vir hulle belowe dat U hulle nakomelinge so baie sal laat word soos die sterre in die lug. U het beloof dat U die land as ’n ewige erfdeel aan hulle nageslag sal gee.” Die Here het toe van besluit verander. Hy het die plan gelos wat Hy gehad het om sy volk uit te wis. Moses is van die Here af weg en het teen die berg begin afklim. Hy het die twee plat klippe waarop die bewys van die Here se ooreenkoms geskryf was, in sy hand gehou. Daar was aan die voorkant en ook aan die agterkant op die klippe geskryf. Die klippe was God se eie handewerk. God se eie handskrif was op die klippe gegraveer. Toe Josua die lawaai van die volk hoor, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp.” “Nee,” sê Moses, “dis nie die gejuig van oorwinnaars nie, dis nie die gekerm van verloorders nie, maar die lawaai van ’n dronkspul wat ek hoor.” Toe Moses nader kom aan die kamp en die beeld van die kalf sien en sien hoe hulle al in die rondte dans, het hy so kwaad geword dat hy die plat klippe op die grond neergesmyt het. Dit het in stukke by die voet van die berg gelê. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?” Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.” Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Dié wat aan die Here se kant is, moet hier by my kom staan!” Die hele familie van Levi het toe om hom gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Vat jou swaard en gaan maak deur die hele kamp elkeen voor die voet dood, of dit nou jou broer, vriend of familielid is, maak nie saak nie.’” Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Daardie dag is daar ongeveer 3 000 mans dood. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het vandag vir die Here gewerk. Julle was bereid om te doen wat Hy sê. Julle het na Hom geluister, selfs al het dit beteken dat julle seuns en broers moes doodmaak. Die Here die Almagtige sal vir julle sorg.” Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het ’n vreeslike sonde gedoen. Ek gaan nou dadelik weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir wat julle aangevang het.” Moses het teruggegaan en tot die Here gebid: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike fout gemaak. Hulle het vir hulleself ’n god van goud gaan staan en maak. As U bereid is, vergewe asseblief tog die fout wat hulle gemaak het. Anders moet U maar my naam uitvee uit die boek waarin U die name opskryf.” Die Here antwoord hom toe: “Ek sal net dié wat verkeerd gedoen het se name uit my boek uitvee. Gaan nou terug en gaan lei die volk na die plek toe wat Ek met jou afgespreek het. My hemelse boodskapper sal saam met jou daarnatoe gaan. Ek sal nog deeglik met die volk afreken oor die oortreding wat hulle begaan het.” Die Here het die volk met ’n plaag getref oor die goue kalf wat hulle Aäron vir hulle laat maak het om voor te bid. Die Here het vir Moses gesê: “Jy en jou volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar verder trek na die land wat Ek vir Abraham, Isak en Jakob beloof het. Ek het hulle immers belowe dat Ek die land vir hulle nakomelinge sal gee. Ek sal my hemelse boodskapper stuur om jou na dié vrugbare land te lei. Hy sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf. Ek self sal nie saam met julle soontoe gaan nie. Hierdie volk volg hulle eie kop. As Ek saam met julle moet gaan, gaan Ek julle net langs die pad vermoor.” Toe die volk hierdie harde woorde van die Here hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle het al die juweliersware afgehaal wat hulle gedra het. Dit was omdat die Here Moses vir hulle laat sê het: “Julle is te eiewys dat Ek dit vir een oomblik met julle sal kan uithou wanneer Ek saam met julle moet gaan. Haal liewer julle juweliersware af dat Ek kan kyk wat Ek met julle wil doen.” Vandat hulle van die Horebberg af weg is, het die Israeliete nooit weer juweliersware gedra nie. Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af in die veld opgeslaan. Hy het dit genoem “die tent waar daar vir God raad gevra word”. Elkeen wat by die Here raad gesoek het, het soontoe gegaan. Wanneer Moses na hierdie tent toe gegaan het, het die hele volk by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het hom agterna gekyk totdat hy in die tent ingegaan het. Sodra Moses in die tent ingegaan het, het die hoë wolk waarin die Here vroeër gedurende die dag voor die volk uitgetrek het, afgesak en oor die ingang van die tent gaan hang. Die Here het dan met Moses gepraat. Wanneer die volk die wolk oor die tent se ingang sien hang, het hulle uitgegaan en by die ingang van hulle tente gekniel en tot die Here gebid. In die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat met mekaar sit en gesels. Wanneer Moses na die kamp toe teruggekom het, het sy jong helper, Josua die seun van Nun, by die tent agtergebly. Hy het nie daarvandaan af weggegaan nie. Moses het later vir die Here gesê: “U het vir my gesê dat ek die volk van hier af moet laat trek. U sê dan glad nie vir my wie U saam met my sal stuur nie. U het ook vir my gesê dat U my goed ken en dat U van my hou. As dit dan so is, sê asseblief vir my wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my wil hê en ek dit kan doen. Hierdie nasie wat ek moet lei, is immers tog u eie volk.” “Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here toe vir Moses. “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie. Waaraan anders sal ons weet of U vir ons omgee of nie? Ons sal dit net weet as U saam met ons gaan. Waaruit anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor al die ander volke op aarde?” “Goed,” het die Here vir hom gesê, “Ek sal dan maar saam met julle gaan, soos jy gevra het. Ek sal maak soos jy vra, want Ek ken jou baie goed.” Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?” Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê. Jy mag egter nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly lewe as hy die Here se gesig moet sien nie. Kom, hier is ’n rots waarby jy kan staan. Wanneer Ek met my Goddelike grootheid hier verbygaan, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm totdat Ek verby is. Wanneer Ek verby is en my hand wegvat, sal jy My van agter af kan sien. Niemand mag My egter van voor af sien nie.” Die Here sê toe vir Moses: “Gaan kap vir jou twee plat klippe wat net so lyk soos die twee wat jy stukkend gegooi het. Ek sal weer alles daarop skryf wat op die eerste twee was. Jy moet dit teen môreoggend reg hê sodat jy in die oggend teen die berg kan uitklim en by My bo-op die berg kan kom staan. Daar mag nie nog iemand anders saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg enigiemand anders te siene wees nie. Daar mag ook nie enige vee of beeste teen die hang van die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe uitgekap wat net soos die eerstes gelyk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en die oggend vroeg opgestaan. Hy het teen Sinaiberg uitgeklim met die klippe in sy hand. Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Hy het sy Naam “Die Here” uitgeroep. Terwyl die Here by Moses verbygaan, roep Hy uit: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken. Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.” Moses het dadelik op sy knieë gegaan en tot die Here begin bid. Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk. Vergeef tog ons sonde en ons oortreding. Aanvaar ons as u eie volk.” Die Here antwoord toe: “Kyk, Ek sal ’n nuwe ooreenkoms met julle maak. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur. Sulke dinge het nog nêrens op die aarde gebeur nie. Geen volk het so iets gesien nie. Al die volke rondom julle sal sien wat die Here kan doen. Ek sal groot dinge met jou laat gebeur. Besluit nou om alles te doen wat Ek vandag van jou vra. Dan sal Ek die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land uit verdryf. “Wees versigtig dat jy nie ’n ooreenkoms sluit met hierdie mense wat in die land bly waarheen jy gaan nie. Jy gaan in ’n strik trap as jy dit doen. Jy moet hulle aanbiddingsplekke afbreek. Maak hulle klippilare gelyk met die grond. Kap die pale af wat hulle vir hulle godin Asjera geplant het. Moenie ’n ander god aanbid nie. Ek verdra dit nie dat jy ander gode aanbid nie. Ek verwag van jou dat jy in alles net aan My getrou sal wees. Moenie ooreenkomste maak met die mense wat reeds in die land woon nie. Wanneer hulle agter hulle gode aandraf en vir hulle offers bring, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle aan hulle offermaaltye deel te neem. Wanneer julle met hulle begin ondertrou en van hulle meisies vir julle seuns as vroue vat, sal julle dogters en julle seuns agter hulle gode begin aangaan en hulle godsdiens volg. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak wat uit metaal gegiet is om dit te aanbid nie.” “Onthou om die fees van die brood sonder suurdeeg te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle sewe dae lank kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Julle moet dit gedurende die maand Abib doen. Dit is die maand waarin julle uit Egipte weg is. “Al die eerste manlikes wat ’n ma in die wêreld bring, behoort aan My. Dit is jou seun, maar ook die bees of die skaap wat eerste gebore word. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil met ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Jou oudste seun moet jy met geld uitkoop. Niemand mag sonder ’n offer voor My kom nie. “Hou ses dae lank aan met jou werk. Op die sewende dag moet jy daarmee ophou. Op daardie dag moet jy rus. Dit maak nie saak of dit ploegtyd of oestyd is nie. Hou die oesfees wanneer jy begin oes en die eerste graan van die land af begin kom. Hou ook die fees aan die einde van die oestyd. By al drie hierdie feeste moet al jou mansmense die Here, die God van Israel, by sy woonplek kom aanbid. Niemand sal julle grond probeer afneem wanneer julle vir hierdie drie feeste weg is van die huis om tot die Here te gaan bid nie. Ek sal die nasies voor jou uit wegjaag. Ek sal die grond wat aan jou behoort, al meer maak. Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie. Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.” Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het. Toe Moses van die berg Sinai afkom met die plat klippe in sy hand - die bewys van hulle ooreenkoms met God - het Moses nie geweet dat die vel op sy gesig geblink het nadat hy met God gepraat het nie. Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, en hulle sien ook hoe sy gesig blink, het hulle bang geword om naby hom te kom. Moses het hulle egter nader geroep. Toe Aäron en al die mans nader kom, het Moses met hulle begin praat. Toe al die Israeliete by hom was, het Moses alles wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het, aan hulle oorgedra. Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy gesig gesit. [34-35] Wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal totdat hy weer terugkom. As hy weer by hulle terugkom, kon die Israeliete aan sy gesig wat so blink sien dat Moses met die Here gepraat het. Hy sê dan vir hulle alles wat die Here vir hom gesê het. Dan sit hy weer die doek terug oor sy gesig totdat hy weer ’n volgende keer met die Here gaan praat. Moses het al die Israeliete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Die Here verwag van julle dat julle vir ses dae sal aangaan met die dinge wat julle elke dag doen. Op die sewende dag moet julle daarmee ophou. Uit respek vir die Here moet julle heeltemal uitspan. As iemand op daardie dag aangaan met sy werk, sal hy doodgemaak word. Op die rusdag mag julle glad nie vuur maak waar julle woon nie.” Moses het verder vir almal wat daar bymekaar was, gesê: “Die Here verwag van julle dat julle vir Hom geskenke sal bring. Julle kan kies wat julle vir die Here gaan bring: dit kan van goud, silwer of brons gemaak wees; van blou, pers of bloedrooi wolstof, van linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle of gebreide velle of akasiahout. Dit kan olie vir die lampe van die ligstaander wees, of kruie vir die salfolie en die wierookoffers. Dit kan ook oniks of ander halfedelstene wees wat op die skouerstuk en die sak voor Aäron se bors vasgesit kan word.” “Almal wat die kennis en die vaardigheid het, moet kom help om die tent te maak. Daar is baie dinge wat ons moet maak. Daar is die tent met die seile wat bo-oor kom; die hakies wat daaraan vasgewerk word; die panele en die dwarslatte wat hulle bymekaarhou; die silwer regop pale en hulle voetstukke; die ark waarin die bewys van die ooreenkoms gehou word met die pale waarmee dit gedra word; die deksel wat bo-op die ark pas; die gordyn wat die tent in twee deel; die tafel waarop die brode neergesit word met sy drahoute en sy toerusting; die ligstaander wat die tent verlig en alles wat daarvoor nodig is; sy lampies en hulle olie; die kleiner altaar vir die wierook met sy drastokke; die salfolie wat gemeng moet word en die wierook; die gordyn by die ingang van die tent; die groot altaar buite waarop die offers verbrand word met sy koperrooster en drahoute en toerusting; die koperbak op sy voetstuk waar die priesters hulleself was; die muur rondom die binnehof met sy regop pale en hulle kopervoetstukke en die gordyn by die ingang van die binnehof; die kopertentpenne en hulle toue waarmee die tent en die binnehof geanker moet word; die spesiale klere wat vir die werk by die tent gebruik word, Aäron se klere en die klere wat sy seuns vir hulle werk moet gebruik.” Nadat Moses met hulle gepraat het, het almal uitmekaargegaan. Elkeen wat so gevoel het, het geskenke vir die Here gebring soos hulle self besluit het. Dit was dinge wat gebruik kon word om die tent te bou en te betaal vir alles wat daarvoor gemaak moes word, asook die klere wat vir die diens by die tent gemaak moes word. Almal wat gevoel het hulle wil iets vir die Here gee, mans sowel as vroue, het gekom en hulle het vir die Here borsspelde, oorbelle en ringe, halssnoere en allerhande goed gegee wat van goud gemaak is. Elkeen het sy goue goed vir die Here gegee. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here ’n geskenk van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring. Vroue wat kon weef, het materiaal van blou, pers en rooi wol geweef en ook fyn linne. Hulle het dit dan vir die Here gebring. Die vroue wat dit kon doen, het bokhaar geweef. Die leiers van die volk het die onikssteen en die ander edelstene geskenk waarop gegraveer moes word en op Aäron se skouerstuk en die sak voor sy bors vasgesit moes word. Hulle het ook die speserye en die olie vir die ligstaander, die olie en die wierook gegee. So het elke man en vrou van die Israeliete wat iets vir die Here wou doen en kon help om die goed te maak, vrywillig vir die Here kom gee wat hulle gehad het. Daarna het Moses vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël as leier gekies om die tent te maak. Hy is Uri se seun. Sy oupa is Gur. Hulle is uit Juda se familie. God se Gees gee aan hom die verstand en die insig, die kennis en die vaardigheid om dinge te ontwerp en dit van goud of silwer of koper te maak. Hy kan edelstene bewerk en houtsnywerk doen en enige kunswerk maak. “Aan hom en aan Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het God die vermoë gegee om ander op te lei om dinge te maak. Hulle kan dinge ontwerp. Hulle weet ook hoe om graveerwerk en borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne. “Besaleël, Oholiab en al die ander mense vir wie die Here die aanleg gegee het en die kundigheid om die tent te maak, moet dit vir ons bou soos die Here dit wil hê.” Moses het Besaleël en Oholiab laat kom en almal wat bekwaam was en daarvoor kans gesien het om die werk te doen. Moses het die boumateriaal wat die Israeliete gegee het, vir hulle beskikbaar gestel om met die werk te begin. Die volk het egter aangehou om elke oggend weer nuwe voorraad te bring. Die mense wat die tent maak, het toe een vir een van die werk waarmee hulle besig was, na Moses gekom en vir hom gesê: “Die volk bring nou meer goed as wat ons nodig het om die dinge te maak wat die Here gesê het.” Moses het toe oral in die kamp laat afkondig dat hulle moet ophou om goed vir die werk te bring. Die volk het opgehou om goed te bring. Daar was nou oorgenoeg voorraad om die tent te maak. Trouens, daar het selfs daarvan oorgebly. Elkeen wat kon help, het saamgewerk. Hulle het die onderste laag van die dak uit tien stukke materiaal van fyn linne gemaak waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef was en waarop figure met vlerke geborduur was. Elkeen van hierdie tien stukke was presies ewe groot. Elkeen was veertien meter lank en twee meter breed. Hulle het dit op mekaar gepas en daarvan twee identiese stelle gemaak. Vir elke stel het hulle vyf stukke materiaal op hulle lengte aan mekaar vasgewerk. Hulle het blou lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vasgewerk sodat daar 50 lussies was wat presies teenoor mekaar was toe die twee stelle op mekaar gepas is. Hulle het ook 50 goue hakies gemaak en deur die lussies gehaak sodat die twee stelle op mekaar gepas het om een dubbelvel te vorm vir die onderste laag van die tent. Hulle het toe ’n seil van bokhaarmateriaal gemaak om bo-oor die eerste laag van die tent te trek. Dit is uit elf stukke materiaal gemaak. Al elf stukke was presies ewe groot. Elkeen was vyftien meter lank en twee meter breed. Hiervan het hulle twee stelle opgemaak. Hulle het vir die een stel vyf stukke materiaal op mekaar gesit en aan mekaar vasgewerk. Vir die ander stel het hulle ses stukke gebruik. Hulle het 50 lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vasgewerk sodat daar 50 lussies was wat teenoor mekaar was. Hulle het ook 50 koperhakies gemaak om deur die lussies te haak sodat die twee velle op mekaar een dubbelvel kon vorm vir die middelste laag van die tent se dak. Hulle het ook ’n boonste laag vir die dak van die tent gemaak. Dit is gemaak van ’n laag gelooide ramsvel waaroor ’n tweede laag gebreide vel gesit is. Hulle het ook vir die tent houtpanele uit akasiahout gemaak. Elke paneel was vyf meter hoog en 75 sentimeter breed. Daar was aan elke paneel twee lasplekke sodat dit aan ’n volgende paneel gelas kon word. Al die panele van die tent het dieselfde gelyk. Hulle het twintig panele gemaak vir die suidelike muur van die tent. Hulle het ook 40 voetstukke van silwer gemaak om onder die panele te sit. [25-26] Vir die muur aan die oorkant, aan die noordekant, het hulle ook twintig panele met 40 voetstukke gemaak. *** Vir die koppenent aan die westekant van die tent het hulle ses gewone panele gemaak [28-29] asook twee versterkte hoekpanele. *** In hierdie muur was daar agt panele met sestien silwervoetstukke. Hulle het ook dwarslatte van akasiahout gemaak wat die panele aan mekaar moes hou. Daar was vyf latte vir elke muur. Op die lang kante was daar vyf latte en vyf vir die muur aan die endkant. Hulle het die middelste dwarslat gemaak om op halwe hoogte dwarsoor die panele van hoek tot kant te loop. Hulle het die panele en die dwarslatte met goud oorgetrek. Hulle het ook goue ringe aan die panele vasgesit waardeur die dwarslatte gesteek kon word. Hulle het ook die gordyn gemaak waarmee die tent in twee verdeel moes word. Dit is van geweefde linne gemaak waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef was en waarop figure met vlerke geborduur was. Hulle het vier akasiahoutpale gemaak en dit met goud oorgetrek. Vir elke regop paal is ook ’n silwervoetstuk gemaak. Vir die ingang van die tent, aan die regterkant, het hulle ’n gordyn van geweefde materiaal gemaak waardeur blou, pers en bloedrooi wol gestik was. Vir die gordyn het hulle vyf regop staanders gemaak met goue hakies. Die bopunte van die staanders en die gordynstokke wat daarop rus, het hulle met goud oorgetrek. Vir elke staander het hulle ’n voetstuk van koper gemaak. Besaleël het die ark gemaak waarin die bewys van die ooreenkoms gekom het. Dit was van akasiahout. Dit was 115 sentimeter lank, en 70 sentimeter breed en hoog. Hy het dit aan die binne- en buitekant met suiwer goud oorgetrek. Aan die buitekant het hy ’n versierde goue rand gesit. Hy het vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kon word. Hy het die ringe aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit, sodat daar twee ringe aan die voorkant en twee ringe aan die agterkant was. Hy het daarby drastokke van akasiahout gemaak wat deur die ringe kon pas en hulle ook met goud oorgetrek. Hy het toe die drastokke deur die ringe van die ark gesit om dit daaraan te kan dra. Hy het ’n deksel uit suiwer goud gemaak wat op die ark pas. Dit was 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. Hy het ook twee beelde van hemelse figure met vlerke uit goud gemaak. Hulle is bo-op die deksel vasgesit, aan die twee punte daarvan. Hulle gesigte was na mekaar toe en hulle het hulle vlerke oor die deksel uitgesprei gehou asof hulle dit beskerm. Besaleël en sy mense het verder die tafel gemaak waarop die brode neergesit moes word. Dit was van akasiahout, 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed. Dit was 70 sentimeter hoog. Hulle het dit met suiwer goud oorgetrek en ’n goue rand reg rondom vasgesit. Daar is ook ’n lys reg rondom die tafel vasgesit waaraan daar ’n goue rand was. [13-14] Hulle het ook vir die tafel vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kan word. Hulle het die ringe aan die lang sye onder aan die hoeke, net onder die lys vasgesit. Daar kon twee stokke daardeur gesteek word om die tafel te dra. *** Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak om deur die ringe te pas. Ook dié drastokke is met goud oorgetrek. Daarby het hulle die skottels en bakke waarin die geurige offers kom, en die flesse en komme wat by die tafel gebruik word, van suiwer goud gemaak. Besaleël-hulle het ook die goue ligstaander gemaak. Sy voetstuk en steel is uit een stuk goud gemaak. Dit is met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier. Ses arms het uit die steel gekom, drie aan die een en drie aan die ander kant. Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam uitkom, was daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare. Aan die bokant van die steel self was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare. Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, was daar ’n blomknop. Die arms en blomknoppe is alles uit een stuk goud gemaak. Hulle het ook sewe olielampe vir die kandelaar gemaak. Die tangetjie waarmee die vlammetjies uitgedoof word en die oliepithouer vir die lampies is van suiwer goud gemaak. Hulle het 34 kilogram suiwer goud gebruik om die staander en alles wat daarby hoort te maak. Onder Besaleël se toesig is ook die kleiner altaar uit akasiahout gemaak. Dit was vierkantig: 45 sentimeter breed en 90 sentimeter hoog. Dit het een geheel gevorm met sy horingagtige uitsteeksels. Alles, van die plat vlak bo-op en die vier sye, sowel as die horings, was met suiwer goud oorgetrek. Daar was ook ’n rand van goud reg rondom die altaar. Hy het twee stelle draringe van goud vir die altaar laat maak en hulle aan die twee teenoorstaande kante net onder die omranding vasgesit. Daardeur kon die drastokke gesit word waaraan die altaar gedra kon word. Ook die drastokke wat hiervoor gemaak is, is met suiwer goud oorgetrek. Besaleël het ook soos ’n goeie apteker ’n mengsel salfolie vir die tempel aangemaak. Hulle het vir die tent die altaar gemaak waarop die offers verbrand moes word. Dit is van akasiahout gemaak: twee en ’n half meter breed op die sye en een en ’n half meter hoog. Op elke hoek het hulle ’n uitsteeksel vasgesit wat soos ’n beeshoring lyk. Hulle het die hele altaar met koper oorgetrek. Ook die gereedskap wat by die altaar gebruik moes word, is van koper gemaak. Daar was potte om die as in te krap, skoppe om dit op te skep, komme, vurke en panne om kole in te dra. Hulle het ook ’n rooster van koper vir die altaar gemaak. Dit is aan die boonste helfte van die altaar vasgesit waar dit tot bo by die rand gekom het. Hulle het ook vier koperringe gemaak waardeur die drastokkke vir die altaar gesteek kon word. Dit was aan die hoeke van die altaar vas. Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek. Die drahoute is deur die ringe gesteek om die altaar te dra wanneer dit vervoer moes word. Die altaar was ’n houtkis wat van binne hol was. Hulle het ook die kom met sy voetstuk waar die werkers hulleself moes gaan was, van koper gemaak. Die koper is geskenk deur die vroue wat by die ingang van die tent gewerk het. Hulle het hulle koperspieëls hiervoor gegee. Verder het hulle ook ’n binnehof gemaak. Dit was ’n lapa reg rondom die tent. Die suidelike muur is van fyn linne gemaak. Dit was 44 meter lank. Die twintig pale wat dit regop gehou het en die hakies waaraan dit gehang het, was van silwer. Die silwerpale het kopervoetstukke gehad. Die muur aan die teenoorstaande kant van die binnehof was net so lank en het net soveel regop pale op kopervoetstukke gehad. Die gordyn voor die ingang het ook aan silwerhakies gehang en die regop pale waaraan dit vas was, was ook van silwer. Aan die westekant was die binnehof 23 meter lank. Daar was tien regop pale op voetstukke van koper. Ook hier was die hakies en pale van silwer. Aan die kant waar die son opkom, aan die oostekant, was die binnehof ook 23 meter lank. [14-15] Daar was tien meter gordyn aan weerskante van die opening wat elkeen aan drie regop pale op voetstukke gehang het. *** Die materiaal wat reg rondom gebruik is om die binnehof te maak, was van fyngeweefde linne. Die voetstukke van al die pale was van koper gemaak. Die hakies waaraan die materiaal gehang het en die gordynstokke waardeur dit geryg is, was alles van silwer. Die gordyn by die ingang na die binnehof aan die oostekant, is gemaak van geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit was nege meter lank en, soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, bykans twee meter hoog. Dit is aan vier pale met hulle voetstukke van koper gehang. Die pale se bopunte, die hakies wat gebruik is en die gordynstokke waaraan dit hang, was van silwer. Die tentpenne waarmee die tent en die gordyn geanker is, is van koper gemaak. Hier volg nou presies die hoeveelheid materiaal wat gebruik is om die tent te maak. Die Leviete het alles onder leiding van Itamar presies opgeteken. Moses het gesê dat dit gedoen moes word. Besaleël die seun van Uri uit die stam van Juda het toesig gehou en gekyk dat alles gemaak is presies soos die Here gesê het. Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het hom gehelp. Hy was ’n vakman en ontwerper wat die bekwaamheid gehad het om borduurwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol op linne. Die goud wat gebruik is om alles vir die tent te maak, was in totaal 986 kilogram goud en 38 kilogram silwer. Dit het gekom uit die vrywillige bydraes wat die volk gemaak het. Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was 3 400 kilogram plus nog twintig en ’n vyfde kilogram. Toe die volk getel is, moes elke man bo twintig wat getel is, ses gram silwer betaal. Daar is in die sensus 603 550 mans getel. Die 100 stawe silwer is gebruik om die 100 voetstukke vir die regop pale te giet, dit wil sê 34 kilogram per voetstuk. Die twintig en ’n vyfde kilogram is gebruik vir die hakies en die gordynstokke en om die bopunte van die pale oor te trek. Die koper wat die volk geskenk het, was in totaal 2 380 kilogram, plus nog ’n verdere 27 en bykans ’n half kilogram. Daarvan is die volgende gemaak: die voetstukke van die regop pale by die ingang, die lys om die brandofferaltaar, sy koperrooster rondom, die gereedskap wat by die altaar gebruik is, al die voetstukke van die pale wat rondom die binnehof gebruik is, die voetstukke van die pale by die ingang en al die koperpenne wat gebruik is om die tent en die linnemuur rondom die binnehof te anker. Hulle het die klere wat Aäron en sy seuns moes dra wanneer hulle by die tent gaan werk het, van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak. Hulle het Aäron se klere presies net so gemaak soos die Here gesê het dit gemaak moes word. Die deel wat oor Aäron se skouers moes kom, is van geweefde linne gemaak, waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geborduur is. Hulle het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Die goue drade is dan op kunstige manier saam met die blou, pers en bloedrooi wol in die materiaal ingeweef. Hulle het twee bande gemaak om dit oor die skouers vas te knoop. Hulle het die gordel waarmee die skouerkleed om die heupe vasgemaak word, op dieselfde manier borduur met gouddraad, en blou en pers en bloedrooi wol, net soos die Here vir Moses gesê het. Nadat hulle onikssteen poleer het, het hulle dit in goud vasgesit en die name van die families van die Israeliete kunstig daarop gegraveer. Dit is op die skouerbande van die kledingstuk vasgesit sodat die name op die stene Israel kon verteenwoordig. Dit is alles gedoen presies net soos die Here vir Moses gesê het. Die sak wat voor die bors kom, was ’n kunswerk. Hulle het dit net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne gemaak wat met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm. Dit was vierkantig en 25 sentimeter lank en breed. Hulle het twaalf soorte halfedelstene daarop vasgesit, gerangskik in vier rye van drie elk. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag; in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis; in die derde hiasint, agaat en ametis, en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit is in ’n montering van goud vasgesit. Die twaalf name van die families van Israel is elkeen op een van die twaalf stene gegraveer soos op ’n seëlring. Hulle het vir die sak goue kettinkies uit suiwer goud gemaak wat soos tou gevleg is. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dit aan die twee boonste hoeke van die sak vasgesit. Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit. Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en hulle vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die sak wat voor die bors kom. Dit is vasgewerk aan die binnekant waar dit teen die skouerkleed kom. Twee verdere ringe is laag af vasgewerk waar die gordel kom, aan die bande van die skouerkleed. Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak. Hulle het die deel wat bo-oor die deel gaan wat oor die skouers is, uit een stuk blou materiaal gemaak. Dit het in die middel ’n gat gehad waardeur die kop gesteek kon word. Die opening is omgeboor en versterk sodat dit nie kon skeur nie. [24-26] Reg rondom die kleed, al op die soom van die kleed, het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk, wat met goue klokkies afgewissel is. Dit was soos die Here gesê het dit moet wees. *** *** Hulle het ook vir Aäron en sy seuns stelle klere van fyn linne gemaak vir hulle werk by die tent. Daar was gordels en mooi hoede en linnebroeke en serpe van goed geweefde linne, gestik met blou, pers en bloedrooi wol. Dit was soos die Here gesê het dit moes lyk. Hulle het ook vir Aäron se hoed ’n blom van suiwer goud gemaak. Hulle het met kunstige letters daarop gegraveer: “Vir die Here alleen.” Dit is aan die voorkant van die hoed vasgeknoop met ’n blou toutjie. Dit was alles presies soos die Here vir Moses gesê het dit gemaak moet word. Uiteindelik was alles klaar vir die tent waar God sy volk sou ontmoet. Die Israeliete het elke ding net so gemaak soos die Here dit vir Moses gesê het. Hulle het alles van die tent gebring sodat Moses daarna kon kyk. Daar was die tent met alles wat daarby hoort, sy hakies en sy panele en dwarslatte, die pale met hulle voetstukke, die boonste laag vir die dak van gelooide ramsvel en van gebreide vel, die gordyn om die tent in twee te deel, die ark vir die bewys van die ooreenkoms met die drahoute waaraan dit gedra moes word en die deksel wat bo-op kom, die tafel met alles wat daarby hoort en die brood wat daarop kom, die ligstaander van soliede goud met sy lampies en alles wat daarby gaan en die olie wat daarin gebruik moes word, die goue altaartjie, die salfolie om die priester te bevestig, die spesiaal vervaardigde wierook vir die altaar, die gordyn wat voor die ingang na die tent moes hang, die koperbeslaande altaar vir die brandoffers met sy koperrooster en drahoute en bybehore, die waskom waar die priesters hulleself moes was en sy voetstuk, die materiaal om rondom die binnehof te hang met sy regop pale en hulle voetstukke, die gordyn by die ingang na die binnehof, die toue en penne om die tent en die muur om die binnehof te anker, al die gereedskap wat nodig was vir die tent, die klere wat die priesters moes aantrek om in die tent hulle werk te doen en die klere vir Aäron en vir sy seuns. Al hierdie dinge het die Israeliete presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het dit moes lyk. Moses het deeglik na alles gekyk en gesien dat alles presies net so was soos die Here dit wou hê. Hy het toe gebid dat die Here almal wat die tabernakel gebou het, voorspoedig sal maak. Die Here het weer met Moses gepraat: “Jy moet die tent op die nuwejaarsdag, die eerste dag van die eerste maand, oprig. By hierdie tent sal Ek my volk ontmoet. Gaan sit die ark met die bewys van ons ooreenkoms op sy plek in die tent. Hang dan die gordyn voor die ark om dit van die ander deel van die tent af te skerm. Gaan sit ook die tafel op sy plek en rangskik alles wat daarby behoort, rondom hom. Sit ook die ligstaander op sy plek en hang sy lampies op hulle plek aan die staander. Gaan sit die goue altaartjie op sy plek reg voor die gordyn wat voor die ark hang. Hang ook die gordyn by die ingang van die tent op sy plek. Gaan sit die altaar vir die brandoffers buite die tent regoor die ingang na die tent. Sit die koperbak waar die priesters hulle was, tussen die tent en die altaar neer. Maak dit vol water. Sit die linnemure rondom die binnehof op. Hang die gordyn op by die ingang na die binnehof. “Vat dan van die salfolie en gooi daarvan uit oor die tent en alles wat daar binne-in is. Dra die tent en alles wat daar kom aan My op, sodat dit vir My afgesonder kan wees. Gooi ook salfolie oor die brandofferaltaar uit en oor alles wat daarby hoort. Dra die altaar aan My op, sodat dit uitsluitlik aan My gewy kan wees. Wy ook die waskom en sy voetstuk aan My wanneer jy salfolie daaroor gooi. Sê dan vir Aäron en sy seuns om nader te kom na die ingang van die tent van ontmoeting toe. Laat hulle dan hulleself daar met water was. Trek vir Aäron die klere aan wat hy by die tent moet dra. Gooi olie op sy kop uit en stel hom aan in sy werk sodat hy my priester kan wees. Laat sy seuns ook nader kom en hulle spesiale klere aantrek. Gooi op dieselfde manier olie op elkeen van hulle se kop sodat hulle ook my priesters kan wees wat by die tent vir My werk. Wanneer jy hulle vir hulle werk aanstel, sal hulle en hulle nakomelinge vir altyd my priesters wees.” Moses het presies gedoen wat die Here vir hom gesê het. Die tent is aan die begin van die tweede jaar na hulle uit Egipte weg is, op die eerste dag van die jaar, opgeslaan. Moses het die tent opgerig deur eers die voetstukke wat onder die panele kom, in posisie te laat plaas. Die panele is daarop gesit en aan mekaar vasgesluit by die koppelpunte en met die dwarslatte wat deur die ringe kom. Hy het die verskillende lae wat hulle vir die dak gemaak het, bo-oor die panele laat trek met die laag velle heel bo, net soos die Here gesê het hy moet maak. Hy het die plat klippe waarop God sy ooreenkoms geskryf het in die ark gaan sit. Hy het die drastokke van die ark deur die ringe aan die kant daarvan gesteek en die deksel bo-op die ark op sy plek geskuif. Daarna het hy die ark op sy plek laat neersit. Hy het die gordyn opgehang en die ark met die bewys van God se ooreenkoms agter die gordyn toegemaak, soos die Here gesê het. Hy het toe die tafel waarop die brood kom, binne-in die tent teen sy noordelike muur voor die gordyn gaan neersit. Hy het die offerbrood daarop neergesit. Hy het die ligstaander ook daar gaan neersit, regoor die tafel teen die suidelike muur. Hy het die lampies aan die staander vasgesit soos die Here gesê het. Hy het die altaartjie vir die wierook ook in die tent laat sit, reg voor die gordyn wat in die middel hang. Hy het die wierook daarop gesit en dit aan die brand gesteek, soos die Here vir hom gesê het hy moet maak. By die ingang van die tent het hy toe die gordyn opgehang wat die tent toemaak. Hy het die altaar vir die brandoffer reg teenoor die ingang van die tent laat sit sodat hy daarop die brandoffer en die graanoffers kon bring op die manier wat die Here vir hom voorgeskryf het. Hy het die koperbak tussen die altaar en die tent laat sit. Dit is met water volgemaak sodat die werkers van die tent hulle daar kon gaan was. Moses en Aäron en sy seuns het water uit hierdie bak gevat om hulle hande en voete te was. Wanneer hulle op pad was na die tent toe om offers op die altaar te bring, moes hulle eers hulleself daar gaan was. Dit was soos die Here vir Moses gesê het. Laaste het Moses die binnehof rondom die tent en die altaar opgeslaan. Hy het ook die gordyn by die ingang na die binnehof laat hang. So het Moses gedoen wat hy moes. ’n Wolk het afgesak en oor die tent gaan hang. ’n Mens kon voel dat God daar by die tent was. Die wolk en die Here wat daar was, was so geweldig dat Moses nie eens in die tent kon ingaan nie. As die wolk van die tent af oplig, was dit vir die Israeliete die teken om op te pak en verder te gaan. As die wolk oor die tent bly hang het, het hulle op daardie plek gebly totdat die wolk weer opgelig het. Terwyl Israel op pad was na die land wat die Here vir hulle sou gee, het hulle die hele tyd gevoel dat die Here in die tent was. Hulle het dit gesien aan die wolk wat bo die tent gehang het. In die nag was daar ’n bol vuur wat hulle verseker het dat die Here by hulle is. Die Here was by die tent waar Hy sy volk ontmoet. Hy het Moses toe nader geroep en vir hom gesê: “Jy moet met die Israeliete gaan praat. Sê vir hulle: Wanneer een van julle iets vir die Here bring, kan dit uit julle beeste of uit julle kleinvee kom. “As dit uit die beeste kom en dit is bedoel om heeltemal verbrand te word, moet dit ’n manlike dier sonder enige liggaamsgebrek wees. Die persoon bring die dier na die ingang van die tent van ontmoeting toe. Hy bring dit vir die Here sodat die Here van hom kan hou. Hy sit sy hand op die dier se kop. Daarmee wys hy dat dit sy geskenk vir God is wat vir hom vrede moet maak by God. Hy sny dan die bul keelaf daar voor die Here. Die dienaars uit Aäron se familie vang die bul se bloed op en spat daarvan aan elke kant van die offerplek wat daar by die ingang van die tent staan. Die persoon slag die vel van die offerdier af en hy sny die dier in stukke op. Die dienaars uit Aäron se familie sorg dat daar ’n vuur op die altaar brand. Hulle hou dit aan die brand en pak elke keer weer hout op die vuur. Hulle pak die stukke vleis wat die man opgesny het saam met die kop en niervet bo-op die hout op die altaar. Die man was dan met water ook die binnegoed van die dier en sy pote af. Die dienaar vat dit alles en hy verbrand dit op die altaar. Dit word dan ’n brandoffer genoem. Alles van die dier word met vuur verbrand om die Here te plesier. “As die dier wat hy vir die Here bring, uit sy vee kom, moet dit ’n ram wees sonder foute. Dit kan uit die skape of die bokke kom. Dit moet heeltemal met vuur verbrand word. Die persoon sny dit keelaf daar voor die Here aan die linkerkant van die offerplek. Die dienaars uit Aäron se familie vat van die bloed van die ram en sprinkel dit reg rondom teen die kante van die offerplek. Die persoon wat die dier gebring het, sny dit dan in stukke op. Die dienaar wat by die tent werk, pak die kop van die dier en sy niervet bo-op die hout wat op die altaar brand. Die persoon was ook die dier se binnegoed en sy pote met water af. Die dienaars verbrand dit ook op die altaar. Dit bly alles op die altaar totdat dit weggebrand het. Dit word ’n vuuroffer genoem. Die Here hou baie daarvan wanneer dit vir Hom gebring word. “As iemand vir die Here ’n voël bring om op die altaar te verbrand, kan dit ’n tortelduif of enige ander duif wees wat hy kom offer. Die dienaar wat by die tent werk, bring die voël na die offerplek toe. Hy draai die duif se nek om. Hy verbrand dit op die altaar. Hy druk die bloed van die duif teen die kant van die offerplek uit. Hy sny ook die krop en die ingewande van die duif uit. Hy gooi dit weg aan die regterkant van die offerplek waar die uitgebrande as en vet lê. Daarna skeur hy die voël aan sy vlerke oop sonder om dit heeltemal uitmekaar te skeur. Die persoon wat by die tent werk, verbrand dan die duif in die vuur op die altaar. Dit word ook beskou as ’n brandoffer, ’n vuuroffer, waarvan die Here baie hou.” “Wanneer iemand vir die Here graan bring, moet dit van fyngemaalde meel wees. Die persoon kan bloot net olyfolie oor meel uitgooi en lekkerruik-wierookstokkies daarop sit. Hy bring dit dan net so na God se dienaars daar by die tent. Hy vat ’n hand vol van die meel met die olie en wierook op. Hy gee dit vir die dienaar sodat hy dit op die altaar kan verbrand. Die hand vol meel verteenwoordig ook die res van die meel wat hy vir die Here gebring het. Dit word ’n vuuroffer genoem. Dit is iets waarvan die Here baie hou. Die res van die meel wat nie verbrand is nie, moet vir die diens van die Here gegee word. Aäron en sy seuns wat by die tent van ontmoeting werk, mag dit vir hulleself vat. “Wanneer die graan wat jy vir die Here bring, graan is wat reeds verwerk is en al klaar in ’n oond gebak is, kan dit in die vorm van ’n ronde brood wees van fynmeel wat met olie gemeng is waarin daar nie suurdeeg is nie. Dit kan ook beskuitjies wees sonder suurdeeg wat in olyfolie gedoop is. As dit graan is wat op ’n plaat gebak is, moet dit gemaak wees van fynmeel wat met olyfolie gemeng is waarin daar nie suurdeeg is nie. Jy moet dit in krummels breek en olie daaroor uitgooi. Dit word dan ’n graanoffer genoem. As dit graan is wat in ’n braaipan gebak is, moet jy dit maak van fynmeel wat met olie gemeng is. “Jy moet die graanoffer wat op enige van hierdie maniere gemaak is, vir die dienaar by die tent bring sodat hy dit op die altaar kan verbrand. Hy sal daaruit die deel van die graan vat wat verbrand moet word, en dit op die altaar laat brand. Dit sal dan ’n vuuroffer wees waarvan die Here baie hou. Die res van die brood wat oor is, behoort alles aan die Here. Aäron en sy seuns wat vir die Here by die tent werk, mag dit eet. “Die graan wat jy vir die Here bring, mag nooit suurdeeg in hê nie. Jy mag nie iets vir die Here bring waarin daar suurdeeg of heuningstroop is nie. Julle mag wel sulke graan vir die Here bring wanneer dit die heel eerste graan van die oes is. Julle mag dit egter nie op die altaar laat verbrand nie. Dit moet nie gebring word om ’n geurige offer vir die Here te wees nie. Jy moet al die graan wat jy vir die Here bring, met sout behandel. Jou verbintenis aan die Here is ’n geestelike sout wat jou van afvalligheid bewaar. Net so moet daar ook altyd sout wees by die graan wat jy vir die Here bring. Oor alles wat jy offer, moet daar sout wees. “As die graan wat jy vir die Here bring, uit die heel eerste graan van die begin van die oes kom, moet dit vars stampkoring wees wat oor vuur gerooster is. Jy moet die heel beste graan uit jou oes vir die Here gee. Jy moet olyfolie daaroor gooi en lekkerruik-wierookstokkies daarop sit. Gee dit vir die Here as ’n graanoffer. Die dienaar by die tent van ontmoeting sal die deel van die koring en die olie vat wat saam met die geurige wierook verbrand moet word. Hy sal dit in die vuur verbrand as ’n vuuroffer vir die Here.” “Iemand kan vir die Here ’n dier uit sy vee bring wat hy vir die Here wil gee waarvan hy self ook wil eet. Hy wil dit eet asof hy en die Here saam eet. Hy moet dan ’n bul of ’n koei na die Here by die tent van ontmoeting bring. Dit mag nie foute hê nie. Die persoon sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit daar by die ingang van die tent van ontmoeting. Die dienaars uit Aäron se familie sprinkel van die bloed van die dier aan al die kante teen die offerplek. Die persoon verbrand die dele van die dier wat hy vir die Here gebring het as ’n vuuroffer vir die Here. Hy vat dan die vet wat oor die binnegoed is, die twee niere en die niervet wat daaraan is, en die vetlaag oor die lewer wat hy van die niere losgesny het. Die Aärondienaars verbrand dit op die altaar in die vuur. Dit word ’n vuuroffer genoem waarvan die Here baie hou. “As die dier wat iemand vir die Here bring om saam met die Here te eet uit die kleinvee kom, kan dit ’n manlike of ’n vroulike dier wees. Dit moet egter ’n gesonde dier wees. As dit ’n jong ram is wat hy vir die Here gee, bring hy die dier na die Here toe. Hy sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die dienaars van Aäron sprinkel van die dier se bloed aan al die kante teen die altaar. Die deel wat hy vir die Here verbrand, is die vet van die dier, sy hele vetstert wat hy teen die kruis afgesny het, die hele stuk vet oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet wat hy van die niere losgesny het. Die dienaar by die tent verbrand dit alles op die altaar. Dit is die Here se deel wat vir Hom op die altaar verbrand word. “Indien die persoon ’n bok vir die Here bring, sit hy sy hand op die dier se kop. Hy slag hom daar voor die tent van ontmoeting. Die dienaars van Aäron spat van die bloed teen die kante van die altaar. Die deel wat hy vir die Here verbrand, is die vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vetlaag oor die lewer en die vetlaag oor die lewer wat hy afgesny het. Die dienaar van die tent van ontmoeting verbrand dit alles op die altaar as die Here se deel van die offer. Dit is ’n vuuroffer wat vir die Here baie lekker ruik. “Al die vet aan die dier behoort aan die Here. Die voorskrif staan vas: julle mag nooit self die vet of die bloed eet nie. Dit staan vas vir die een geslag na die ander, waar hulle ook al sal woon.” Die Here het deur Moses die volgende gesê oor iemand wat nie moedswillig was toe hy iets gedoen het wat die Here in sy wette verbied het nie. “As dit die hoof van die dienaars by die tent van ontmoeting is wat verkeerd gedoen het, maak hy dat die hele volk ook skuldig is aan die oortreding. Hy moet vir die fout wat hy gemaak het ’n jong bul sonder enige foute na die Here bring. Dit sal vir sy sonde betaal. Hy lei die bul tot by die ingang van die tent van ontmoeting. Daar sit hy sy hand op die bul se kop. Hy slag dit daar voor die Here. Hy vat dan van die bloed van die bul en gaan daarmee in die tent van ontmoeting in. Daar doop hy sy vinger in die bloed en sprinkel daarvan sewe keer in die teenwoordigheid van die Here op die grond voor die gordyn wat die Here se deel van die res van die tent afskort. Hy smeer ook van die bloed aan die horings aan die punte van die altaar waarop die wierook gebrand word daar in die tent van ontmoeting. Die res van die bul se bloed gooi hy uit teen die onderkant van die ander altaar by die ingang van die tent van ontmoeting. Vervolgens slag hy al die vet van die bul uit wat hy vir sy sonde gebring het: die vetlaag aan die binnekant en die vet aan die binnegoed self. Hy sny ook die twee niere en die vet wat daaraan is, by die kruis uit en die vet van die niere wat by die lewer is. Dit is dieselfde dele wat by die bul uitgesny word wat vir die Here geoffer word om saam met Hom te eet. Hy verbrand dit dan alles op die altaar met vuur. Die res van die bul, sy vel, al sy vleis, sy kop en sy pote, sy binnegoed en alles wat daarin is, alles van die bul, moet hy uitvat buitekant die laer na die plek wat eenkant gesit is vir die vet en die as wat van die tent af kom. Op daardie plek buite die kamp waar die vet en die as gewoonlik verbrand word, moet hy dan al hierdie dele van die bul op ’n houtvuur verbrand. “As die hele geloofsgemeenskap van Israel oortree het, is hulle almal skuldig. Selfs al was die groep onbewus daarvan dat hulle iets gedoen het wat in die Here se wette verbied is, is hulle almal skuldig. As dit duidelik word dat hulle oortree het, moet hulle almal saam ’n bul na die tent van ontmoeting bring om dit vir hulle sonde te offer. Die leiers van die groep moet daar voor die Here hulle hande op die bul se kop sit. Hulle slag dan die bul voor die Here. Die dienaar wat met olie gesalf is om vir die Here te werk bring dan van die bloed van die bul in die tent van ontmoeting in. Hy doop sy vinger in die bloed en sprinkel sewe keer teen die gordyn in die tent. Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat daar voor die Here in die tent van ontmoeting staan. Die bloed wat nog oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit. Hy vat ook al die vet van die bul en verbrand dit op die altaar. Hy maak met die bul presies net soos hy gemaak het met die bul wat hulle vir hulle sonde gebring het. Wanneer hy so maak, vergewe die Here die volk dat hulle oortree het. Daar kom weer vrede tussen God en sy mense. Die dienaar van die tent vat dan die bul se karkas uit die kamp uit en hy verbrand dit daar, net soos hy met die eerste bul gemaak het. Hierdie bul is dan die offer vir die sonde van die volk. “Wanneer ’n leier ’n fout maak sonder dat hy dit bedoel en hy iets doen wat die Here beveel het nie mag gebeur nie, is hy skuldig. As dit duidelik word dat hy oortree het, moet hy ’n bokram sonder gebrek vir die Here bring. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag hom op dieselfde plek waar die offers geslag word wat vir die Here verbrand word. Daarmee betaal hy vir die sonde wat hy gedoen het. Die persoon wat by die tent diens doen, vat van die bloed van die dier wat hy vir sy sonde kom offer het en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die voet van die altaar uit. Hy verbrand dan al die vet van die bok op die altaar net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Wanneer die dienaar so maak, bring hy vergewing vir die leier se sonde. Hy word dan vrygespreek van sy oortreding. “Wanneer een van die inwoners van die land nalatig was en iets gedoen het waarteen die wette van die Here hom gewaarsku het, is hy skuldig. As iemand hom daarop wys, moet hy ’n bokooi sonder foute vat en dit vir die Here kom offer. Dit betaal vir die fout wat hy gemaak het. Hy sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit op dieselfde plek waar die diere wat verbrand word, ook geslag word. Die amptenaar wat diens doen by die tent vat van die bloed van die ooi en smeer daarvan met sy vinger aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Wat van die bloed oorbly, gooi hy uit teen die onderkant van die altaar. Die man verwyder self al die vet van die bok net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit op die altaar sodat dit vir die Here lekker kan ruik. Op hierdie manier vergewe die Here die man vir wat hy verkeerd gedoen het. Daar is weer vrede tussen hom en die Here. “Indien die persoon eerder ’n skaapooi vir sy sonde wil bring, moet dit een sonder foute wees. Hy sit sy hand op haar kop en slag die dier vir sy sonde op dieselfde plek waar die offer geslag word wat in die vuur verbrand word. Die dienaar vat van die bloed van die dier wat geslag is en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die brandofferaltaar. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit. Die persoon verwyder self al die vet net soos die vet van die bok wat geoffer is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit alles op die altaar saam met die ander diere wat vir die Here verbrand word. So bring die dienaar by die tent die betaling vir die persoon se sonde. Hy word vrygespreek. Daar kom weer vrede tussen hom en God.” “As iemand gehoor het hoe iemand anders vloek en hy bly stil daaroor, het hy ’n fout gemaak. Hy moet vir sy skuld betaal. As iemand aan iets raak wat nie reg is nie, word hy self ook iemand wat nie reg is nie. ’n Wilde dier wat dood is, of vee wat gevrek het of enige dier wat as vuil beskou word, is nie reg nie. Selfs al het hy nie geweet dat die dooie dier verkeerd is nie, is hy skuldig aan ’n oortreding. As iemand raak aan iets van ’n mens wat verbode is, aan enigiets wat homself verkeerd maak, of hy dit nou geweet het of nie, kan hy gestraf word. “Iemand is voor op die wa en hy sweer sommer dat hy iets gaan doen, of dit nou is om kwaad of goed te doen. Vir elke ding wat die mens met ’n eed gesweer het om te doen sonder dat hy eers daaroor nagedink het, sal hy skuldig wees, of hy mooi geweet het wat hy doen of nie. As hy op enige manier skuldig is, behoort hy te sê hy is jammer. Vir die oortreding wat hy begaan het, moet hy vir die Here iets bring om vir sy skuld te betaal. Vir sy sonde moet hy met ’n ooi uit sy kudde betaal, of met skape of met bokke. Die dienaar by die tent van ontmoeting sal met die dier vir sy sonde betaal en vir hom vergifnis vir sy sonde bring. “As iemand nie een van hierdie diere kan bekostig nie, mag hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe vir die Here bring om vir sy skuld te betaal. Die een duif betaal vir sy sonde. Die ander een is ’n offer wat vir die Here verbrand word. Hy moet die twee duiwe vir die dienaar by die tent bring. Die dienaar offer die een wat vir die sonde is eerste. Hy draai sy nek om en knyp sy kop agter die nek af. Hy mag dit egter nie afskeur nie. Die dienaar spat van die bloed van die duif teen die kant van die offerplek. Die bloed wat oor is, druk hy teen die voet van die altaar uit. Dit is dan ’n offer vir die sonde wat die persoon gedoen het. Die tweede duif verbrand hy volgens die voorskrifte wat vir hom gegee is. So bring die dienaar by die tent vir die man vrystelling van die oortreding wat hy begaan het. God vergewe hom. “Indien ’n persoon nie genoeg geld het vir twee tortelduiwe of twee jong duiwe nie, kan die persoon wat oortree het, twee kilogram fynmeel vir sy sonde bring. Omdat dit ’n offer vir sy sonde is, mag hy nie olyfolie of geurige wierook daaroor sit nie. Hy bring die meel na die dienaar by die tent van ontmoeting. Die amptenaar sal dan ’n hand vol daarvan vat vir die deel wat verbrand moet word en dit op die altaar verbrand saam met die diere wat vir die Here in die vuur verbrand word. Dit sal die offer vir sy sonde wees. Op hierdie manier bring die dienaar ’n offer vir enige van die oortredings wat hierbo genoem is wat die persoon begaan het. Die persoon word vir sy oortreding vergewe. Met die meel wat oor is, maak die dienaar net soos met dié wat oor was by die offer wat gebring is om saam met die Here te eet.” Die Here het verder vir Moses gesê: “Iemand is miskien nie getrou aan God nie. Deur sy agtelosigheid respekteer hy nie die dinge wat vir die Here belangrik is nie. Hy moet dan iets vir die Here bring om sy oortreding weer goed te maak. Die dier wat hy bring om sy skuld goed te maak moet ’n skaapram uit sy veetrop wees wat geen foute het nie. Die waarde daarvan moet deur die dienaar by die tent bepaal word. Hy moet vergoed vir die skade wat hy die Here se blyplek laat ly het. Hy moet een vyfde meer betaal as die verlies wat hy veroorsaak het. Hy moet die geld vir die dienaar by die tent kom gee. Die dienaar herstel die skade wat hy gemaak het met die skaapram wat vir sy oortreding geslag word. Sy oortreding word dan vergewe. “As iemand nalatig is en iets doen wat die Here verbied het, is hy skuldig. Hy word daarvoor verantwoordelik gehou. Hy bring ’n ram sonder enige foute na die dienaar by die tent toe. Dit moet net soveel werd wees as die oortreding wat hy begaan het. Die dienaar gebruik dit om te betaal vir die fout wat hy gemaak het waarvan hy nie bewus was nie. Hy word dan van sy oortreding vrygespreek. Die offer wat hy gebring het vir sy skuld by God herstel dan die oortreding wat hy teen die Here begaan het.” Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Iemand maak ’n fout en is ontrou aan die Here wanneer hy ontken as iemand anders iets vir hom gegee het om op te pas. Hy kan ook iemand anders uitbuit en in werklikheid van hom steel. Of hy tel iets op wat iemand verloor het en steek dit weg. Of hy jok oor iets wat ’n mens gedoen het en toe oortree het. As dit dan gebeur dat hy op een van hierdie maniere oortree het en skuldig is, moet hy alles wat hy verkeerdelik gevat het, teruggee. Hy moet die persoon wat hy uitgebuit het, vergoed. Ook dit wat iemand vir hom gegee het om op te pas moet hy teruggee. So ook die ding wat iemand verloor het wat hy opgetel het. Wanneer hy op sy oortreding gewys word, moet hy vir alles waaroor hy gelieg het, weer goed maak. Hy moet dit met ’n vyfde vermeerder vir die persoon vir wie hy dit skuld. Hy moet vir sy skuld vir die Here ’n ram sonder gebrek uit sy kudde bring wat net soveel werd is as ’n offer. Daarmee sal hy sy verhouding met God herstel. Hy moet dit na die dienaar by die tent bring. Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.” [8-9] Die Here het verder ook nog vir Moses beveel om aan Aäron en sy seuns voorskrifte te gee vir die offers wat verbrand moet word: “Dit moet heelnag in die vuur op die altaar gelos word tot die volgende oggend toe. Die vuur op die altaar moet die heeltyd bly brand. *** Die amptenaar by die tent trek sy spesiale linnehemp en linnebroek wat daarby pas, aan. Hy vat dan die vet weg wat in die vuur uit die brandoffer uitgebraai het. Hy sit dit langs die offerplek op die grond neer. Dan trek hy die spesiale klere uit en trek weer sy gewone klere aan. Hy vat die vet uit die kamp uit weg na die plek wat daarvoor eenkant gesit is buite die kamp. Die vuur moet altyd op die altaar aan die brand bly. Dit mag nooit doodgaan nie. Die dienaar moet elke oggend weer nuwe hout op die vuur gooi om dit aan die brand te hou. Hy moet die offer wat verbrand word om sy verhouding met die Here te herstel bo-op die hout sit en die vet van die offer daarop uitbraai. Die vuur moet altyd aan die brand bly daar op die altaar. Dit mag nooit doodgaan nie.” Die aanwysings vir die graan wat vir die Here gebring word, is soos volg: “Aäron se seuns wat by die tent werk, bring die graan na die offerplek toe daar voor die Here. Die werker by die tent van ontmoeting vat ’n hand vol van die gemaalde graan saam met die olie en die geurige wierookstokkies wat daarop is. Hy verbrand alles op die altaar as die deel wat die hele offer verteenwoordig. Dit is ’n offer waarvan die Here baie hou. Die deel van die offer wat dan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Daar mag nie enige suurdeeg daarby kom nie. Dit word geëet daar by die voorhof van die tent waar die Here sy volk ontmoet. Ook wanneer dit gebak word, mag daar nie suurdeeg bykom nie. Die Here staan hierdie deel van die offer aan die dienaars by die tent af as hulle deel van die offers. Dit is net so volledig uitgesonder vir die Here se diens soos die offers wat vir die sonde gebring word en die offers wat na die tent van die Here gebring word om vir die skuld voor God te betaal. Al die mans uit Aäron se familie wat by die tent werk, mag daarvan eet. Dit is ’n reël oor die offers wat vir die Here met vuur verbrand word wat nooit mag verander oor al die geslagte wat kom en gaan nie. Elke persoon wat van hierdie offers eet, moet aan die diens van die Here toegewy wees.” Die Here het verder ook vir Moses gesê: “Aäron en elkeen na hom wat hom opvolg, moet vir die Here ’n offer bring op die dag wanneer hy in sy dienswerk aangestel word. Dit moet van twee kilogram fynmeel uit die graan wees. Die een helfte daarvan moet in die oggend vir die Here gebring word en die ander helfte teen die aand. Dit moet met olie gemeng word, daarna op ’n plaat gebak en dan in krummels gebreek word. Dit is die soort offer waarvan die Here baie hou. Aäron se seuns wat na hom aangestel word, moet dieselfde offers bring. Die Here het dit vasgestel en dit mag nie verander word nie. Die offer moet heeltemal verbrand word. Elke offer uit die graan wat die dienaar vir die Here bring, moet heeltemal verbrand word. Daar mag ook niks daarvan geëet word nie.” Die Here het ook nog verder vir Moses gesê dat hy die volgende aanwysings vir Aäron en sy seuns moet gee vir offers wat vir oortredings gebring word: “Die offer vir oortredings moet op dieselfde plek gebring word waar die offers geslag en vir die Here verbrand word. Dit is spesiale offers wat net vir die Here gegee word. Die dienaar wat die offer vir die sonde bring, mag wel daarvan eet. Hy moet dit in die binnehof van die tent van ontmoeting eet. Elkeen wat met die vleis van die offer werk, moet in diens van die Here staan. As daar miskien van die offer se bloed op iemand se klere spat, moet hy die klere daar by die tent met water was. As die vleis van die offer in ’n kleipot gaargemaak word, moet die pot daarna stukkend gebreek word. As dit in ’n koperpot gekook word, moet die pot daarna uitgeskuur word en met water uitgespoel word. Al die mans wat by die tent werk, mag van die vleis eet. Dit is geheel en al afgesonder vir die dienswerk by die tent van die Here. Niemand mag verder van die vleis van die dier eet as dit eers een maal in die tent van ontmoeting ingebring is om te vergoed vir die oortreding wat begaan is nie. Dit moet heeltemal met vuur verbrand word.” Hier volg nog reëls vir die offer wat vir die Here gebring word om vir die skuld te betaal: “Hierdie offer behoort uitsluitlik aan die Here. Die dienaars by die tent moet hierdie offer op presies dieselfde plek slag waar hulle ook die offers slag wat verbrand word. Die bloed word reg rondom teen die altaar gespat. Die dienaar moet ook al die vet van die dier op die altaar offer, dit wil sê, ook die vetstert, die vet aan die binnegoed, die twee niere met die vet daaraan by die kruis en die lewer wat saam met die niertjies verwyder is. Hy moet dit alles op die altaar verbrand as ’n offer wat vir die Here verbrand word. Hierdie offer betaal vir die oortreding wat begaan is. Al die manlike werkers by die tent mag ook daarvan eet. Hulle moet dit egter op ’n plek gaan eet wat daarvoor eenkant gesit is, omdat dit uitsluitlik vir die diens van die Here afgesonder is. “Dieselfde reël as vir die offer wat vir die sondeskuld gebring word, geld ook vir die offer wat vir die sonde gebring word: die dienaar wat die offer bring om vir die sonde te betaal mag die vleis daarvan eet. Die werker wat die offer op die altaar verbrand, mag die vel van die dier vir homself hou. Enige offer wat van graan gebring word en wat in ’n oond gebak is of in ’n braaipan gebraai of op ’n rooster gaargemaak is, behoort ook aan die dienaar wat dit geoffer het. Al die ander graanoffers, of dit nou met olie gemeng is of nie, behoort egter aan al die dienaars uit Aäron se familie.” Nou volg die aanwysings vir die offer wat vir die Here gebring word om die verbintenis met Hom te versterk: “As iemand hierdie offer bring om vir die Here dankie te sê, bring hy saam met die offer ook brood waarin daar nie suurdeeg is nie en wat in olie gebak is, of beskuitjies sonder suurdeeg wat in olie gedoop is, of ’n roosterkoek wat in olie geweek is. Saam met hierdie offer waarmee hy dankie wil sê, bring hy verder ook nog ’n ronde brood waarin daar wel suurdeeg is. Hy vat van elkeen van hierdie verskillende soorte brood en bied dit vir die Here as ’n buitengewone offer aan. Die dienaar wat dit na die altaar vat, mag self ook daarvan eet. “Die vleis van die offer waarmee iemand kom dankie sê, moet op dieselfde dag waarop die offer gebring word, opgeëet word. Daar mag niks daarvan oorbly tot die volgende oggend nie. As iemand ’n offer vir die Here bring om ’n belofte na te kom, of sommer net vrywillig iets vir die Here offer, moet dit nog dieselfde dag geëet word. As daar wel iets oorbly, mag dit egter nog op die volgende dag geëet word. Die vleis wat op die derde dag nog oor is, moet egter heeltemal verbrand word. As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here. Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet. Elkeen wat nie aan die Here behoort nie en van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die volk weggejaag word. Iemand wat aan enigiets gevat het wat die Here as vuil beskou, of dit ’n mens of ’n dier is, en dan van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die gemeenskap verstoot word.” Die Here het nog verder deur Moses die mense van Israel beveel: “Sê vir die Israeliete: Julle mag nie beeste, skape of bokke se vet eet nie. Die vet van ’n dier wat vanself doodgegaan het, of deur roofdiere verskeur is, kan wel vir ander dinge gebruik word, maar julle mag dit nie eet nie. Enigiemand wat die vet eet van ’n dier wat vir die Here geoffer is, moet uit sy volk weggejaag word. Waar julle ook al woon, julle mag nooit voëls of diere se bloed drink nie. Enige persoon wat sulke bloed drink, sal uit die volk verwyder word.” Die Here het nog verder deur Moses die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word, in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe. Julle moet die regterblad van die dier wat julle vir die Here offer om julle goeie gesindheid teenoor Hom te bewys as ’n spesiale porsie aan die dienaar afstaan. Die regterblad van die dier behoort uitsluitlik aan die dienaars uit Aäron se familie wat die bloed en die vet van die offer by die altaar hanteer. Ek het die bors wat vir My geoffer word en die blad wat aan My opgedra word, by die Israeliete weggevat uit die deel van die offers wat hulle mag eet, en Ek het dit uitsluitlik vir die dienaars uit Aäron se familie en hulle gesinne gegee. Dit is ’n reël vir die Israeliete wat nooit verander mag word nie. “Dit is die gedeelte van die offers vir die Here wat op die altaar verbrand word, wat aan Aäron en sy seuns behoort van die dag dat die Here hulle aangestel het om sy dienaars by die tent van ontmoeting te wees. Dit is ook die gedeelte van die offer wat die Here beveel het hulle moet kry van die dag dat Hy hulle uit die Israeliete gekies en laat aanstel het om Hom te dien. Dit is ’n reël wat altyd vas sal staan tot in die verre toekoms.” So moet dan gemaak word met die offer wat heeltemal verbrand word, met die offer wat uit die graan uit kom, die offer wat vir die sonde gebring word, die offer wat gebring word om vir die skuld van die oortreding reg te maak, die offers wat gebring word as iemand as dienaar aangestel word by die tent van ontmoeting, en met die offers wat mense bring om hulle positiewe gesindheid teenoor die Here te wys. Dit is ook die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het by die berg Sinai op die dag toe hy vir die Israeliete voorgeskryf het hoe hulle vir die Here in die Sinaiwoestyn moet offer. Toe het die Here vir Moses gesê: “Vat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar die Here gedien word. Bring ook vir hulle spesiale klere saam vir hulle werk. Bring ook die olyfolie wat jy gaan gebruik om hulle in hulle werk te bevestig, die bul wat vir die sonde geoffer moet word, die twee ramme en die mandjie met brode sonder suurdeeg wat jy nodig gaan hê. Laat sommer ook al die mense uit die laer saam kom na die tent van ontmoeting toe.” Moses het toe gemaak soos die Here vir hom gesê het. Die hele gemeenskap het by die ingang van die tent waar die Here gedien word, saamgekom. Moses het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak.” Moses het Aäron en sy seuns laat nader staan en hulle met water gewas. Hy het Aäron sy spesiale hemp vir sy dienswerk laat aantrek, die serp vir hom omgehang wat die dienaars by die Here se tent moet dra, daar bo-oor nog ’n mantel omgehang, die deel wat oor sy skouers kom oor sy skouers gesit en die mantel met ’n belt vasgebind. Daar was ook ’n sak wat voor sy bors vasgekom het waarin die urim en tummim (waarmee die lot gewerp is om die Here se besluite te bepaal) was wat hy aan die mantel vasgesit het. Hy het ook ’n hoed op Aäron se kop gesit en aan die voorkant daarvan ’n goue wapen vasgesteek, soos die Here hom beveel het. Moses het toe die olyfolie gevat en daarvan aan die tent van ontmoeting gesmeer en aan alles wat daar binne-in was om dit aan die Here op te dra. Hy het ook sewe maal daarvan teen die altaar gespat en die altaar saam met alles wat daaraan behoort, asook die wasbak wat daar staan en die voetstuk waarop dit rus met die olie gesmeer om dit aan God op te dra. Hy het ook van die olie op Aäron se kop laat uitloop om hom so aan die diens van die Here te wy. Moses het Aäron se seuns laat nader staan en ook hulle die spesiale hemde vir hulle dienswerk laat aantrek, hulle serpe vir hulle omgehang en hulle die kopbande laat opsit wat hulle moes dra wanneer hulle by die tent werk, soos die Here gesê het hy moet maak. Toe het Moses die bul wat vir die sonde geslag moes word, nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit en dit is toe geslag. Moses het van die bul se bloed gevat en daarvan met sy vinger reg rondom aan die horings van die altaar gesmeer om dit aan die Here op te dra. Hy het ook van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgegooi om dit aan God te wy sodat die offers wat daarop gebring word, vir die oortredings kon betaal. Daarna het hy die hele vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet uitgesny en dit op die altaar verbrand. Die res van die bul met sy vel, sy vleis en sy pensmis het Moses buite die kamp in die vuur gaan verbrand. Dit was soos die Here gesê het hy dit moet doen. Die ram vir die brandoffer is toe nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gelê. Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi. Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand. Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak. Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. Moses het dit geslag en van sy bloed gevat en daarvan aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer. Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi. Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad. Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra. Moses het dit toe weer by hulle gevat en dit bo-op die offer op die altaar gesit en alles verbrand. Dit was ’n offer om Aäron en sy seuns aan die Here op te dra, ’n offer wat met vuur verbrand word waarvan die Here baie hou. Moses het toe die stuk van die ram se bors gevat en dit ook aan die Here opgedra. Dit was die deel van die ram wat vir die aanstelling van die dienaars gebruik is, wat die Here gesê het Moses vir homself kan vat. Moses het van die olie en van die bloed wat by die altaar was, gevat en op Aäron en oor sy klere, en ook oor sy seuns en oor hulle klere gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere en sy seuns en hulle klere aan die Here toegewy. Moses het Aäron en sy seuns toe aangesê om die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting te gaan kook en dit daar te eet saam met die brood wat uit die mandjie kom wat by hulle aanstelling gebruik is. Sy opdrag was: “Aäron en sy seuns moet dit eet. Wat van die vleis en brood oorbly, moet met vuur verbrand word. Julle mag vir die volgende sewe dae tot die tyd van julle inhuldigingsgeleentheid verby is, nie van die deur van die tent van ontmoeting af weggaan nie. Dit hou ’n volle sewe dae lank aan. Wat vandag gebeur het, is soos die Here gesê het julle aan Hom opgedra moet word. Julle moet sewe dae lank dag en nag by die ingang bly en die opdrag van die Here uitvoer, anders sal julle doodgaan. Dit is soos die Here beveel het.” Aäron en sy seuns het presies gedoen soos die Here hulle deur Moses beveel het. Op die agtste dag het Moses vir Aäron, sy seuns en ook die leiers van Israel na hom toe laat kom. Hy het vir Aäron gesê: “Vat ’n gesonde bulletjie en ’n welgeskape ram en bring een vir die Here as ’n offer vir die sonde en die ander as ’n offer wat in die vuur verbrand word. Sê ook vir die Israeliete hulle moet vir hulleself ’n gesonde bokram bring om vir hulle sonde te offer, sowel as ’n gesonde jaaroud bulletjie en ’n skaaplam om op die altaar te verbrand. Daarby moet hulle ook ’n uitgegroeide bul en ’n ram as ’n offer bring vir die Here om voor die Here te eet, sowel as ’n offer van gemaalde graan wat met olie gemeng is. Die Here wil julle vandag ontmoet.” Die Israeliete het toe al die goed wat Moses opgenoem het, na die tent van ontmoeting gevat. Almal het daar bymekaargekom en voor die Here gaan staan om Hom te ontmoet. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is presies wat die Here wou hê julle moes doen sodat julle kan ervaar hoe geweldig groot Hy is.” Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.” Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi. Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak. Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand. Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat. Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgewas en dit saam met die res van die offer op die altaar verbrand. Hierna het Aäron ook die volk se offer gebring. Hy het die bok gevat wat vir die sonde van die volk geoffer moes word, dit geslag en net so geoffer soos sy eie offer. Hy het ook hulle offer wat op die altaar verbrand moes word, gebring en daarmee volgens die voorskrif gemaak. Hy het ook bo en behalwe die oggend se offer wat verbrand word, ’n offer uit die graan gebring. Hy het ’n hand vol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. Hy het ook die bul en die ram vir die volk se offer waarvan hulle ook kan eet, geslag. Sy seuns het die bloed in ’n houer vir hom aangegee en hy het daarvan reg rondom teen die altaar gespat. Hy het al die stukke vet van die bul en die ram - dit is nou die vetstert, die vetlaag oor die niere en die gedeelte oor die lewer - by die borsstukke gesit. Hy het toe al die stukke vet op die altaar verbrand. Die borsstukke en die regterblad het Aäron egter as ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word, aan die Here opgedra, presies soos Moses voorgeskryf het. Nadat Aäron die offer vir die sondes, die offer wat verbrand word en die offer wat die goedgesindheid van die volk wys, gebring het, het hy sy hande na die volk uitgesteek en die Here gevra om vir hulle goed te wees. Moses en Aäron het toe saam in die tent waar God gedien word, ingegaan. Toe hulle uit die tent kom, het hulle vir die volk die Here se liefde toegewens. Die hele volk het toe bewus geword dat die Here ook daar teenwoordig is. Daar het vuur van die Here af gekom en die offer op die altaar aan die brand laat slaan en die vet op die altaar laat wegbrand. Die hele volk het gesien wat gebeur het, en hulle het geskreeu en op hulle knieë neergeval om die Here te aanbid. Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu, het elkeen ’n houer gevat waarin vuur rondgedra word en warm kole daarin gesit. Hulle het geurige wierook wat fyngemaal was, oor die kole gestrooi en dit toe vir die Here geoffer. Dit was egter ’n offer wat in die vuur verbrand word wat nie volgens die aanwysings was wat die Here vir hulle voorgeskryf het nie. Daar het toe ’n vuur van die Here self af gekom en hulle daar voor die Here doodgebrand. Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het: Hulle wat vir My offer, moet onthou hoe geweldig groot Ek is. Die hele volk moet My met groot respek behandel.” Aäron het nie daarop geantwoord nie. Moses het toe vir Misael en Elisafan, die twee seuns van Aäron se oom Ussiël, laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Gaan haal julle neefs se lyke daar by die tent en vat dit weg na ’n plek buite die kamp.” Hulle het toe gegaan en die mans se lyke wat nog in hulle spesiale klere vir hulle dienswerk was, uit die kamp uit weggevat soos Moses gevra het hulle moet doen. Moses het toe vir Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar gesê: “Julle moenie treur en julle hare los laat hang en julle klere skeur nie. Julle is aan die Here se diens toegewy en Hy kan julle ook laat doodgaan as julle so maak. Hy kan selfs in woede uitbars oor almal in die kamp. Al die ander Israeliete moet egter treur oor die vuur wat die Here laat losbreek het. Julle mag ook nie weggaan van die ingang van die tent van ontmoeting af nie, want julle sal miskien doodgaan. Julle is tog die Here se dienaars wat vir Hom afgesonder is.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het. Die Here het vir Aäron beveel: “Nie jy en ook nie jou seuns mag enige wyn of ander sterk drank drink wanneer julle in die tent van die Here moet gaan werk nie, want dan sal julle sterf. Dit is ’n reël wat nooit verander kan word nie. Julle moet onderskei tussen die dinge wat vir die Here afgesonder is en die dinge wat net gewoon vir alledaagse gebruik is. Daar is dinge en gewoontes wat nie vir die Here aanvaarbaar is nie en ander dinge wat reg is en daarvan getuig dat julle aan die Here behoort. Julle moet die Israeliete leer om alles te doen wat die Here deur Moses vir julle gesê het om te doen.” Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog oor was, Eleasar en Itamar, gesê: “Nadat julle die offer wat met vuur verbrand word, vir die Here gebring het, mag julle die deel van die offer uit die graan wat nie verbrand is nie, vir julleself vat om te eet. Julle moet dit sonder enige suurdeeg net daar by die altaar eet. Dit word heeltemal eenkant gehou vir die diens van die Here en vir sy dienaars wat by die tent die offer bring. Julle moet dit ook net eet in ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Dit is jou en jou seuns se besondere deel van die offers wat vir die Here op die altaar gebring word. Dit is ook die opdrag wat die Here vir my gegee het. Die bors en die boud van die offer wat vir die Here gebring is, kan jy en jou seuns en jou dogters saam met jou op enige plek eet wat vir die dienaars van God se tent en vir hulle gesinne eenkant gesit is. Dit is die deel van die offer wat Israel saam met die Here eet wat aan jou en jou seuns afgestaan word. Die Israeliete moet die boud en die bors wat aan die Here opgedra word, saambring wanneer hulle die stukke vet van die offer vir die Here kom aanbied. Dit moet dan vir jou en jou seuns gegee word om te eet. Die Here het beveel dat dit ’n reëling tussen julle sal wees wat nooit kan verander nie.” Moses het op ’n keer begin soek waar die bok is wat vir die offer geslag moet word. Op daardie stadium was dit egter alreeds geslag en alles op die altaar verbrand. Hy het toe in woede uitgebars teen Aäron se twee seuns wat oor was, Eleasar en Itamar, en vir hulle gesê: “Hoekom het julle nie julle deel van die offer in die tent kom eet nie? Dit is mos iets wat net hier geëet mag word. Die Here het dit vir julle gegee om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om hulle vrede te laat vind met die Here. Die bloed van die offer is glad nie in die tent ingebring nie en julle het ook nie julle deel daar kom eet soos ek julle beveel het nie.” Aäron het toe vir Moses gesê: “My seuns het wel vandag die offers vir die sonde en die offers wat op die altaar vir die Here gebring word, geoffer. Sou dit reg gewees het vir die Here as ek vandag my deel van die offer opgeëis het nadat al hierdie dinge met my en my mense gebeur het?” Moses het sy argument gehoor en hy was tevrede dat hulle reg opgetree het om nie ook hulle deel op te eis nie. Die Here het vir Moses en Aäron gesê om vir die Israeliete soos volg te sê: “Van al die diere wat op land loop, mag julle net dié eet wat duidelik gesplete hoewe het en wat hulle kos herkou. Julle mag nie diere eet wat net herkou of net gesplete hoewe het nie. So mag julle nie ’n kameel se vleis eet nie, want hy herkou wel, maar hy het nie gesplete hoewe nie. [5-6] Julle mag ook nie die vleis van ’n dassie of ’n haas eet nie, omdat hulle herkouers is, maar nie gesplete hoewe het nie. *** ’n Vark het weer opsigtelik gesplete hoewe, maar hy herkou nie. Daarom mag julle nie sy vleis eet nie. Julle mag nie hierdie diere se vleis eet of met hulle karkasse werk nie. Hulle is vir My onaanvaarbaar. “Van al die diere wat in die water leef, in die see en in die riviere, mag julle net dié eet wat vinne en skubbe het. Enige dier in die see of in die riviere wat nie vinne of skubbe het nie, moet julle vermy. Ek belet julle om hulle te eet. Julle moet ook hulle dooie liggame vermy. Alles in die water wat nie vinne en skubbe het nie, moet vir julle iets wees wat julle afskrik. “Van die voëls in die lug wat verbied word, waarvan julle nie mag eet nie, is daar die arend, die lammervanger, die visarend, die aasvoël, al die valkspesies, al die kraaispesies, die volstruis, die naguil, die seemeeu, al die arendspesies, die uil, die visvanger, die ibis, die flamink, die pelikaan, die swaan, die ooievaar, al die reierspesies, die hoep-hoep en die vlermuis. “Enige ding wat vlerke het en in swerms beweeg of wat kruip, mag julle nie eet nie. Dié wat pote het en daarmee kan spring, mag julle egter wel eet. Julle mag van hulle die treksprinkaan, veldsprinkaan, langasemsprinkaan en voetgangersprinkaan eet. Enige ander ding met vlerke wat in swerms voorkom en wat kruip, is egter vir julle verbode. “Die volgende diere sal maak dat Ek julle nie naby my tent van ontmoeting wil hê nie. As julle selfs net aan hulle karkasse raak, wil Ek vir die res van die dag nie met julle te doen hê nie. As iemand aan enigeen van hierdie diere se karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy mag vir die res van die dag nie naby my tent kom nie. Die diere in hierdie groep is enige dier wat nie duidelik gesplete hoewe het nie en wat nie herkou nie. Julle mag hulle nie eet nie. Niemand wat aan hulle vat, moet naby My kom nie. Julle moet wegbly van alle viervoetige wilde diere wat nie kloue het nie. Enigiemand wat aan een van hulle karkasse raak, moet vir die res van die dag van my tent af wegbly. As iemand aan hulle karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy moet ook vir die res van die dag wegbly van My af. Hierdie soort diere moet julle heeltemal vermy. “Van die diere wat op die grond rondkruip, is die volgende vir julle verbode: die mol, die muis en die akkedissoorte, die geitjie, sandakkedis, boomakkedis, gewone akkedis en die verkleurmannetjie. Nie een van hulle is reg nie. Iemand wat aan hulle raak as hulle dood is, moet van my tent af wegbly tot die aand toe. Enigiets waarop een van hulle beland wanneer dit doodgaan, kan nie verder gebruik word nie, of dit nou iets is wat van hout gemaak is, van linne, leer of sakmateriaal. As die voorwerp van een van hierdie dinge gemaak is, moet dit met water afgewas word. Dit sal vir die res van die dag onbruikbaar wees, maar op die volgende dag weer reg om te gebruik. As een van hierdie diere in ’n kleipot beland, word alles wat binne-in die pot was, onbruikbaar. Die pot self moet gebreek word, want enige kos waarby water uit daardie pot kom, sal onbruikbaar wees en enige drinkgoed wat in daardie pot beland, sal bederf wees. Enigiets anders waarin dooie diere uit hierdie groep beland, sal onbruikbaar word. As dit ’n kleioond of kookplek is, moet dit afgebreek word. Dit het besoedel geraak en kan nie langer gebruik word nie. As die diertjie in ’n fontein of waterbak beland, bly die houer bruikbaar, maar die persoon wat dit daar uithaal, word besoedel. As een van hierdie diertjies in saad beland wat gesaai moet word, bly die saad bruikbaar. As dit egter in saad beland wat reeds natgegooi is om gesaai te word, is daardie saad nie langer vir julle bruikbaar nie. As iemand aan die karkas raak van een van die diere wat julle wel mag eet, mag daardie persoon vir die res van die dag nie naby my tent kom nie. Iemand wat van die dooie dier se vleis eet, moet sy klere gaan was. Hy mag ook nie vir die res van die dag by my tent kom nie. Iemand wat die karkas van ’n dier wegvat, moet ook sy klere gaan was en tot aan die einde van die dag van my tent wegbly. “Alle diere wat op die grond rondkruip, is vir My afstootlik en julle mag hulle nie eet nie. Enigiets wat op sy maag oor die grond seil, of op vier pote kruip of baie pote het, moenie geëet word nie, want Ek verbied dit. Moenie julleself afstootlik maak deur enige van hierdie diere te eet nie. Moenie toelaat dat hulle maak dat Ek nie meer iets met julle te doen wil hê nie. Ek is die Here, Ek is julle God. Julle moet aan My getrou bly. Julle moet julleself vir My gee en lewe soos mense wat aan die grote God behoort. Moenie julleself vir My onaanvaarbaar maak en iets gaan eet wat op die grond rondkruip nie. Dit is Ek wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat Ek julle God kan wees en julle aan My kan behoort. “Hierdie is die voorskrifte oor die diere en die voëls en alles wat in die water lewe en op die aarde woon. Dit wys vir julle wat Ek wil hê julle moet laat staan en wat vir My reg is. Dit onderskei die diere wat geëet kan word en dié wat nie geëet mag word nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer ’n vrou ’n baba verwag en ’n seun in die wêreld bring, mag sy vir ’n week lank nie by my tent kom nie. Dit is net soos wanneer sy menstrueer en haarself vir sewe dae eenkant moet hou. Op die agtste dag moet die seuntjie besny word. Daarna volg nog ’n verdere tyd van 33 dae. Totdat daardie tyd verby is, mag sy aan niks vat wat vir die Here eenkant gesit is nie. Sy mag ook nie na die tent toe gaan waar Ek aanbid word nie. As dit ’n dogtertjie was, moet sy veertien dae lank nie tussen die ander mense kom nie. Die verdere tyd wat sy by die huis moet bly, is 66 dae. Wanneer hierdie tyd van afsondering verby is, of dit vir ’n seun of vir ’n dogter is, gaan sy na die dienaar by die ingang van die tent van ontmoeting en gee vir hom ’n lam wat ’n jaar oud is om vir haar te offer op die altaar en ’n gewone duif of tortelduif om vir haar sonde te offer. Hy offer dit dan voor die Here en maak haar weer aanvaarbaar vir God. Sy word dan weer tussen die ander mense toegelaat. Dit is die reël wat gevolg moet word wanneer ’n vrou ’n baba gehad het, of dit nou ’n seun of ’n dogter was. As sy nie genoeg geld het vir ’n lam nie, mag sy twee duiwe of tortelduiwe gebruik, die een vir ’n offer wat op die altaar verbrand word en die ander een vir ’n offer wat sy vir die sondeskuld bring. Die werker by die Here se tent sal dit gebruik om haar posisie te herstel sodat sy weer tussen die ander mense opgeneem kan word.” Die Here het so vir Moses en Aäron gesê: “’n Man wat op sy vel ’n vlek, of ’n skurfte of ’n uitslag het wat in ’n kwaadaardige velsiekte kan oorgaan, moet na Aäron by die tent van die Here, of een van sy seuns wat daar werk, gebring word. Die dienaar van die Here moet dan na die aangetaste deel op die vel kyk. As die haartjies op die plek verkleur het en dit lyk of die seer dieper as die vel is, dan is dit ’n kwaadaardige velsiekte. Die dienaar wat dit ondersoek het, moet die man dan aansê om van die ander mense af weg te bly. As die uitslag op sy vel nie ’n donker kleur het nie en dit nie lyk of dit dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie verkleur nie, moet die dienaar die man met die velaandoening vir sewe dae van ander mense af weghou. Hy moet op die sewende dag weer daarna kyk. As dit vir hom lyk of dit net so gebly het en die uitslag nie verder op die vel versprei het nie, moet hy die man vir nog sewe dae laat eenkant bly. Daarna moet hy hom weer ondersoek. As die uitslag verdwyn het en nie verder op die vel versprei het nie, moet die dienaar vir hom sê dat hy tussen die ander mense kan bly. Dit was ’n tydelike uitslag. Die man moet sy klere gaan was en met sy normale lewe aangaan. As die uitslag egter weer begin versprei nadat die dienaar by die tent van die Here dit bekyk het en hom gesond verklaar het, moet hy teruggaan na die dienaar toe. As die dienaar sien dat dit oor die vel versprei het, moet hy die man uit die gemeenskap laat weggaan. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte. “Wanneer ’n man ’n aansteeklike velsiekte het, moet hy na die tent kom sodat die dienaar daarna kan kyk. As daar ’n witterige uitslag op die vel is, die hare daarop verkleur het en daar ’n oop seer is, is dit ’n chroniese velsiekte. Die dienaar moet hom dan wegstuur uit die gemeenskap uit. Hy hoef nie vir ’n tyd eenkant te bly nie, want dit is duidelik dat hy nie langer tussen ander mense kan bly nie. As die velsiekte versprei het en dit vir die dienaar lyk of dit oor die persoon se hele lyf is, van sy kop tot sy tone, moet hy hom oral ondersoek. As die uitslag kleurloos geword het, moet hy hom na sy mense laat teruggaan. Hy mag tussen ander mense bly. Sodra daar egter ’n rou seer verskyn, kan die persoon nie tussen ander mense bly nie. Die dienaar moet die rou seer ondersoek. ’n Rou seer is gevaarlik en aansteeklik. Dit is ’n chroniese velsiekte. Wanneer die oop seer egter toegroei en wit word, moet die man weer na die Here se tent toe gaan. Wanneer hy ondersoek word en die dienaar sien dat die seer wit geword het, moet hy weer toegelaat word onder die ander mense. Hy word weer in die gemeenskap toegelaat. “As iemand ’n seer op sy lyf gehad het wat weer gesond geword het, en daar kom dan ’n wit roof of rooierige vlek op die plek waar die seer was, moet hy dit vir die dienaar by die tent waar die Here gedien word, gaan wys. As dit vir die dienaar lyk of dit onder die vel ingaan en die hare op daardie plek verkleur het, moet hy die man wegstuur. ’n Kwaadaardige velsiekte het in die seer ontstaan. As hy daarna kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of iets wat onder die vel ingaan nie, maar dat die hare ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder. As dit dan sonder twyfel oor die vel versprei het, moet hy die man wegstuur. Dit is ontsteek. As dit egter net so bly en die uitslag sprei nie verder nie, is dit die litteken wat die seer gelaat het. Hy moet die man na sy mense laat teruggaan. “Wanneer die roof oor ’n brandwond rooierig of wit word, moet die dienaar dit ondersoek. As die hare in die roof ’n ander kleur gekry het en dit is dieper as die vel, het daar kwaad in die brandwond gekom. Die dienaar moet hom dan wegstuur. Hy het ’n kwaadaardige velsiekte. As die werker by die tent na die roof kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of dat dit onder die vel ingegaan het nie, maar dat dit tog ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder. Wanneer hy dit op die sewende dag weer ondersoek en dit het beslis verder oor die vel versprei, moet hy die man wegstuur. Dit het kwaadaardig geword. As die wond egter net so gebly het en die uitslag het nie verder oor die vel versprei nie, maar dit het ligter geword, is dit ’n gewone merk wat die brandwond gelaat het. Die dienaar moet die man dan terugstuur na sy mense toe, want dit is ’n gewone litteken op die brandwond. “Wanneer ’n man of ’n vrou ’n seer teen die kop het of teen die ken en dit vir die dienaar lyk of dit dieper as die vel is en daar koperkleurige dun haartjies in die wond is, moet hy die persoon wegstuur. Dit is ’n kwaai velsiekte van die kop of die ken. Wanneer hy die veluitslag ondersoek en dit lyk vir hom of dit nie dieper as die vel is nie en daar is nie swart haartjies in die wond nie, moet hy die geval met die velaandoening vir sewe dae in isolasie plaas. Wanneer hy weer op die sewende dag na die uitslag kyk en dit nie lyk of dit versprei het nie, die hare daarin nie koperkleurig geword het nie en dit nie dieper as die vel geword het nie, moet die persoon se hare afgeskeer word. Die hare in die aangetaste deel moet egter net so bly. Die dienaar sonder die persoon vir nog sewe dae af. Op die sewende dag bekyk hy weer die veluitslag en as dit nie verder oor die vel versprei het nie en dit nog steeds nie dieper as die vel lyk nie, verklaar hy dat die persoon aanvaarbaar is. Die persoon gaan was sy klere en gaan weer terug na sy huis. As die uitslag hervat het en weer begin versprei het nadat die persoon geskik verklaar was, moet die dienaar weer daarna kyk. As dit verder oor die vel begin versprei het, hoef hy nie nog eers te soek na hare wat verkleur het nie - die persoon is in elk geval onaanvaarbaar. Wanneer hy egter besluit dat die uitslag opgehou het en begin gesond word, omdat daar geen swart haartjies uitgekom het nie, is die persoon reg en mag hy weer teruggaan na die ander mense toe. “Wanneer ’n man of ’n vrou oral ligte kolle op die lyf begin kry, moet hy of sy na die tent toe gaan vir ’n ondersoek. As die uitslag baie lig van kleur is, is dit maar net onskadelike vlekke wat op die vel ontwikkel het. Die persoon is aanvaarbaar. “As iemand se hare begin uitval en hy word bles, is hy nog steeds aanvaarbaar. Selfs as hy sy kuif verloor en net op sy voorkop bles word, is hy nog steeds aanvaarbaar. Wanneer daar egter op sy kaal voorkop of agter op sy bles ’n rooierige uitslag verskyn, het hy ’n velsiekte op sy kop. Die dienaar moet dit ondersoek. As daar ’n rooierige uitslag op sy kop is wat soos ’n velsiekte lyk, is hy aangetas en moet hy homself beslis uit die gemeenskap verwyder. Die dienaar moet uitdruklik verklaar dat die seer op sy kop hom onaanvaarbaar vir die gemeenskap gemaak het. Die persoon wat met die velsiekte aangetas is, moet stukkende klere dra en nie sy hare kam of was nie. Hy moet die onderkant van sy gesig met iets toemaak en uitroep: ‘Ek mag nie by ander mense bly nie, ek mag nie in aanraking kom met ander mense nie!’ So lank as wat hy die velsiekte het, moet hy eenkant gaan bly. Hy moet alleen buitekant die kamp in sy eie blyplek bly.” “Wanneer daar muf op klere kom, of die klere nou van wol of linne gemaak is, of die muf nou voorkom in die garing van die linne of op wol of op leer of enigiets wat van leer gemaak is en daardie mufplek op die klere is vaalgroen of rooierig, kan dit gevaarlik wees. Dit moet vir die dienaar by die tent gewys word. Hy moet baie goed na die mufkol kyk en die ding waarop dit is vir sewe dae gaan wegbêre. Op die sewende dag moet hy dit gaan haal en weer daarna kyk. As die muf op die klere, of in die garing, of die materiaal, of op die ding wat van leer gemaak is, in daardie tyd meer geword het, is dit besmetlike muf. Dit moet verwyder word. Hy moet die klere, of garing, of materiaal van wol of linne of leer waarop dit voorkom, in die vuur verbrand. Dit is gevaarlike muf. Wanneer hy egter daarna kyk en sien dat dit nie meer geword het nie, moet hy die klere laat was en vir nog sewe dae eenkant hou. As hy daarna sien dat die muf nog steeds nie verdwyn het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit ook nie meer geword nie, moet dit weggegooi word. Dit moet in die vuur verbrand word. Dit is heeltemal besmet, of dit nou net aan die bo- of net aan die onderkant is. As hy egter sien dat die mufkol ligter geword het nadat dit gewas is, moet hy die gedeelte waarop die mufkol is, uitskeur uit die klere, of die vel, of die garing, of die materiaal. As daar weer ’n kol op die klere of in die garing, of die materiaal of die leer kom, het die muf weer begin groei. Die klere waarop dit voorkom, moet in die vuur verbrand word. Wanneer dit verdwyn van die klere of garing of materiaal of leer na dit gewas is, moet dit egter nog ’n keer gewas word. Dit kan dan weer gebruik word. “Dit is dan die aanwysings vir muf op klere, in garing, of op materiaal van wol of linne en leerartikels om vas te stel of dit gedra kan word en of dit verbrand moet word.” Die Here het verder vir Moses gesê: “Op die dag wanneer iemand wat ’n velsiekte gehad het, kan terugkom na sy mense toe, moet julle so maak: die dienaar wat by die tent van ontmoeting werk, moet uit die kamp uitgaan en hom daar gaan ondersoek. As hy sien dat sy velsiekte gesond geword het, moet hy die volgende opdrag gee: daar moet vir die persoon wat kan terugkom, twee lewende voëls wat aanvaarbaar is vir die Here, ’n tak van ’n sederhoutboom, ’n stuk rooi garing en ’n hisoptakkie bymekaargemaak word. Die dienaar by die tent slag dan een van die voëls bo-oor ’n kleibakkie met vars water in. Hy vat dan die ander voël en sit dit by die sederhout, die rooi garing en die hisoptakkie, en doop dit in die bloed van die eerste voël wat hy oor die bakkie met vars water geslag het. Hy spat dit dan sewe keer teen die persoon wat terugkom sodat hy terugontvang kan word. Hy laat die voël wat bly leef, in die veld los dat dit kan wegvlieg. Die persoon wat terugkom, moet dan sy klere gaan was, al sy hare afskeer en self ook bad. Hy is dan weer aanvaarbaar en hy kan terugkom in die kamp by sy mense. Hy moet egter eers nog vir die volgende sewe dae buite sy tent bly. Op die sewende dag moet hy weer al sy hare afskeer. Hy moet al die hare op sy kop, sy baard, sy wenkbroue en al die hare op sy lyf alles afskeer. Hy moet dan weer sy klere en homself gaan was. Daarna kan hy weer tussen die ander mense woon. “Op die agtste dag moet hy twee gesonde rammetjies en een jaaroud ooitjie vat waaraan daar niks is wat gebreklik is nie. Hy bring ook by die tent waar Hy aanbid word vir die Here ’n offer uit gemaalde graan van vyf kilogram meel wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is. Die werker by die tent laat dan die man wat teruggekom het, saam met sy offer voor die Here by die ingang van die tent staan. Die dienaar vat een van die rammetjies en die olyfolie, en bring dit na die altaar om dit aan die Here op te dra as ’n offer vir die man se skuld by God. Hy slag die rammetjie op dieselfde plek waar die ander offers vir die sonde verbrand word. Die dienaar mag self ook van hierdie offer eet, net soos hy ook ’n deel van die offer vir die sonde mag eet. Dit is vir God en sy dienaars by die altaar bedoel. “Die dienaar vat die bloed van die rammetjie wat hy geslag het en smeer daarvan aan die persoon wat teruggekom het se regteroorlel, aan sy regterduim en aan sy regtergroottoon. Hy gooi dan van die olie in sy linkerpalm, steek sy regtervinger daarin en sprinkel dit met sy vinger sewe keer voor die Here op die grond. Van die olie wat in sy hand oor is, smeer hy bo-oor die bloed wat hy aan die man se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer het. “Die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die persoon se kop uit. So verbind die dienaar weer die man met God en sy volk. Daarna slag die dienaar ook die offer vir die sonde. Op hierdie manier kan iemand wat ’n velsiekte gehad het en wat hom van die ander mense moes onttrek, weer terugkom in die kamp nadat hy gesond geword het. Hy self slag dan die offer wat die dienaar saam met die graan op die altaar moet verbrand. Die dienaar help hom op hierdie manier om weer deel te word van die mense in die kamp. “As iemand te arm is vir twee rammetjies, hoef hy net een rammetjie te vat om te offer. Die offer uit die graan hoef ook net een tiende deel meel te wees wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is. Hy moet twee duiwe of tortelduiwe in die hande kry, soos wat hy dit wel kan bekostig. Die een duif is ’n offer vir die sonde en die ander een ’n offer wat op die altaar verbrand word. Hy bring al hierdie goed op die agtste dag na die tent van ontmoeting toe waar die Here is sodat hy weer herstel kan word. Die dienaar moet dan die rammetjie wat vir die skuld geoffer word en die sesde liter olyfolie by hom vat en dit alles aan die Here gaan opdra. Ná hy die rammetjie geslag het, moet hy die dier se bloed vat en aan die man se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon smeer. Hy gooi van die olie in sy linkerhand en hy sprinkel daarvan met sy regtervinger sewe keer voor die Here. Hy vat ook van die olie in sy hand en smeer dit oor dieselfde plek waar hy die bloed vroeër aan die persoon se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer het. Die res van die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die man se kop uit om hom weer in ere te herstel. “Daarna offer hy een van die duiwe of tortelduiwe vir die sonde en die ander om op die altaar te verbrand. Die man mag dan weer voor die Here na sy tent kom en by sy volksgenote bly. Dit is hoe daar gemaak moet word om iemand te laat terugkom wat ’n aansteeklike velsiekte gehad het en wat nie al die offers kan bekostig nie.” Die Here het verder vir Moses en Aäron gesê: “Ek gaan julle in die land Kanaän laat woon. Wanneer julle daar bly en Ek dit laat gebeur dat daar kolle teen die mure van julle huise uitslaan, moet die eienaar van die huis vir God se dienaar gaan sê dat dit vir hom lyk of daar ’n plaag in sy huis is. Die dienaar moet dan sê dat alles eers uit die huis uitgedra moet word voordat hy daarheen gaan om dit te bekyk. As hy dit nie dadelik laat doen nie, kan alles in die huis daarmee besmet raak. As dit gedoen is, kan hy gaan ondersoek instel in die huis. As hy die kolle bekyk en sien dit is vaalgeel of rooierige mufkolle teen die muur wat lyk of dit in die pleister is, moet hy dadelik by die deur uitgaan en die huis vir sewe dae lank toesluit. Hy moet op die sewende dag weer kom kyk. As hy sien dat die mufkolle teen die mure verder versprei het, moet hy opdrag gee dat al die stene waaraan dit sit, uit die mure uitgebreek moet word. Dit moet op die ashoop gegooi word wat spesiaal daarvoor buite die dorp uitgehou is. Al die pleister moet van die huis se mure afgekrap word en op dieselfde plek buite die dorp weggegooi word. Ander stene moet in die plek van die ander ingemessel word en die huis se mure moet weer gepleister word. As daar daarna weer mufkolle uitslaan en begin versprei, moet hy weer kom inspeksie hou. As dit nog verder versprei het, is daar gevaarlike skimmel in daardie huis. Die huis kan nie verder gebruik word nie. Die hele huis moet afgebreek word. Die stene, die skrynwerk en al die pleister van die huis moet buitekant die dorp op die ashoop wat daarvoor eenkant gehou is, weggegooi word. Iemand wat miskien in die huis inkom terwyl dit gesluit is, mag vir die res van daardie dag nie naby God se blyplek kom nie. Iemand wat in daardie huis gaan slaap of daar eet, sal eers sy klere moet gaan was. “As die Here se dienaar weer kom inspeksie doen nadat die huis opnuut uitgepleister is, en hy sien dat daar nie meer mufkolle is nie, moet hy die mense toelaat om terug te trek in die huis in. Hy vat dan twee voëls, ’n stuk sederhout, ’n stuk rooi garing en ’n tak van ’n hisopplant om die huis weer bewoonbaar te maak. Hy slag een van die voëls bo-oor ’n kleibakkie met vars water in. Hy vat die stuk sederhout, die hisoptak, die rooi garing en die ander voël en doop hulle in die bloed van die voël wat hy geslag het en in die vars water, en sprinkel daarvan sewe keer teen die huis se mure. So maak hy die huis dan weer bewoonbaar met die bloed van die voël, die vars water, die voël wat bly leef het, die stuk sederhout, die hisoptak en die rooi garing. Die voël wat bly leef het, moet hy buite die dorp in die veld gaan loslaat om weg te vlieg. So herstel hy die huis en maak dat dit weer reg is om in te woon.” Dit is dan die voorskrifte vir enige soort veluitslag, muf wat op klere kom en mufkolle wat teen huise se mure uitslaan, en vir enige vlek, skurfte of uitslag op iemand se lyf. Dit is die reëls om te onderskei tussen dit wat tussen die mense weggevat moet word en dit wat reg is om te gebruik en by hulle te bly. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Sê vir die Israeliete dat die man uit wie se geslagsdeel daar vog uitkom, nie naby my tent mag kom nie. Ek wil hom nie daar hê nie. Of sy afskeiding nou iets is wat vloei en of dit gestol het in sy geslagsdeel, dit is nie vir My aanvaarbaar nie. Enige bed waarop hierdie persoon slaap of enige stoel waarop hy gaan sit, is vuil. [5-6] Enigiemand anders wat op sy bed kom lê, of op die stoel gaan sit waarop hy gesit het, moet eers sy klere en homself gaan was. Hy het self ook tot aan die einde van die dag onrein vir My geword. *** Selfs wanneer iemand net aan hierdie man raak, is daardie persoon self ook aangetas tot aan die einde van die dag. Hy moet sy klere en homself gaan was. Wanneer die man se spoeg miskien op iemand wat vir God reg is te lande kom, moet daardie persoon ook sy klere en homself gaan was. Hy sal vuil wees tot die aand. Enige saal vir ’n dier waarop hierdie man ry, word vuil. Enigiemand wat raak aan iets waarop hierdie man gesit het of dit ronddra, word ook onaanvaarbaar vir die res van die dag. Hy moet sy klere en homself gaan skoonmaak. Elkeen aan wie hierdie man raak terwyl hy nog nie sy hande gewas het nie, sal ook vir die res van die dag onrein vir My wees. Daardie persoon moet sy klere gaan was en ook homself. Enige kleipot waaraan hierdie man vat, moet stukkend gebreek word. Enige houtbak waaraan hy vat, moet met water uitgespoel word.” “Van die dag dat die man se afskeiding opgehou het, moet hy sewe dae aftel. Hy moet dan sy klere was. Hy moet ook homself in lopende water gaan was. Dan mag hy weer voor die Here by sy tent kom. Op die agtste dag gaan hy na die Here toe. Hy gaan na die ingang van die tent waar hy die Here kan ontmoet. Hy vat twee tortelduiwe of gewone duiwe saam en gee dit vir die dienaar by die tent. Die dienaar offer een van hulle vir die sonde en die ander verbrand hy heeltemal op die altaar. So help die dienaar dan die man wat die afskeiding gehad het, om weer voor die Here te kan kom. “As ’n man saad gestort het, moet hy sy hele lyf was. Hy is vir die Here onaanvaarbaar vir die res van die dag. Enige klere of stuk leer waarop sy semen beland het, moet gewas word. Dit kan vir die res van die dag nie weer gebruik word nie. Na ’n man en ’n vrou saam geslaap het, moet al twee hulleself was. Hulle mag vir die res van die dag nie by die Here se tent kom nie.” “Wanneer ’n vrou menstrueer, mag sy vir sewe dae nie by die Here se tent kom nie. As iemand aan haar raak, mag hy ook nie by die Here se tent kom vir die res van die dag nie. Enigiets waarop sy slaap of waarop sy sit terwyl sy menstrueer, kan nie verder gebruik word nie. [21-22] Enigeen wat aan die bed raak waarop sy slaap of aan iets vat waarop sy gesit het, moet sy klere en homself gaan was. Hy mag self vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie. *** Selfs al vat hy net aan iets wat op haar bed of haar stoel gelê het, mag hy nie naby die Here kom nie. As ’n man gedurende haar maandstonde by haar slaap, affekteer dit hom ook en mag hy vir sewe dae nie naby die Here se tent kom nie. Selfs die bed waarop hy dan slaap, word ook onbruikbaar. “As ’n vrou ongereeld is en buite haar gewone tyd menstrueer, of dit hou tydens die normale tyd buitengewoon lank aan, is sy vir hierdie tyd ook uitgesluit. Soos tydens haar menstruasie is enige bed waarop sy lê en enige stoel waarop sy sit, in hierdie tyd ook onbruikbaar. Enigeen wat daaraan vat, moet wegbly van die Here se tent. Hy moet sy klere en homself gaan was. Hy mag vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie. “Sodra sy ophou bloei, moet sy sewe dae aftel. Daarna kan sy weer by God se tent kom. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of enige ander duiwe saamvat na die ingang van die tent waar God hulle ontmoet. Die dienaar slag een duif vir die sonde en die ander een verbrand hy op die altaar. So help hy haar om weer voor die Here te kan kom nadat sy vir die tyd van haar menstruasie nie daar welkom was nie.” “Julle moet die Israeliete waarsku teen hierdie dinge wat hulle van My af weghou sodat hulle nie sommer daar by my tent in die middel van die kamp kom en Ek hulle laat doodgaan nie. Dit is dan die reëls vir ’n man wat nie naby die tent mag kom nie, omdat daar afskeiding uit sy geslagsorgaan was of omdat hy saad gestort het, vir ’n vrou wat menstrueer, vir ’n man of vrou by wie daar onreëlmatige afskeiding is en vir ’n man wat by ’n vrou geslaap het wat menstrueer.” Twee van Aäron se seuns is dood omdat hulle nie op die regte manier vir die Here geoffer het nie. Die Here het daarom met Moses gepraat. Hy het vir Moses gesê: “Jy moet jou broer Aäron waarsku om nie sommer enige tyd daar agter die gordyn in te gaan wat voor die ark hang nie. Hy sal doodgaan. Ek is daar in ’n wolk wat bo die deksel hang. As Aäron in daardie deel van my tent wil inkom, moet hy ’n jong bul bring om vir die sonde te offer en ’n ram om op die altaar te verbrand. Hy moet ook eers gaan was en dan sy spesiale klere aantrek wat hy dra as hy by die tent sy werk doen: die linnehemp, die linnebroek, die gordel wat hy aansit en die hoed wat hy op sy kop dra. Hy moet ook by die volk twee bokke kry om vir die sonde te offer en een skaapram om op die altaar te verbrand. Hy moet die bul wat hy vir homself gekry het nader bring na die tent toe om dit te offer. Hy sal daarmee vir sy kinders se sonde betaal en vrede maak tussen die Here en sy eie mense. Daarna moet hy die twee bokke vat wat hy by die volk gekry het en hulle voor die Here by die ingang van die tent laat staan. Hy moet lootjies trek tussen die twee bokke om vas te stel watter bok hy vir die Here moet offer en watter een hy die woestyn in moet wegstuur, vir Asasel, die demoon wat in die woestyn bly. Aäron vat dan die bok wat vir die Here geloot is en slag dit om dit vir die volk se sonde te offer. Die ander bok wat bly leef het en weggestuur moet word, bring hy eers voor die Here om daardeur vrede met God te maak voor hy dit wegstuur na die woestyn toe. “Hy vat dan die bul wat hy self gebring het en offer dit vir sy sonde, en maak vrede tussen die Here en die mense van sy huis. Hy skep met ’n vuurpan kole wat warm gloei van die altaar af daar voor die Here en vat dit saam met twee hande vol fyngemaalde wierook agter die gordyn in die tent in. Wanneer hy daar binne voor die Here die wierook oor die kole strooi, sal daar ’n wolk van die wierook opstyg. Dit sal oor die deksel gaan hang wat op die houer is waarin die getuienis van God se ooreenkoms met sy volk gehou word. Hy sal die deksel glad nie kan sien nie en nie doodgaan nie. Hy vat dan die bloed van die bul wat hy geslag het en sprinkel dit sewe keer met sy vinger teen die voorkant van die versoendeksel en op die grond voor die deksel. As hy daarna die bok vir die volk se sonde slag, moet hy ook met daardie bloed agter die gordyn ingaan en daarmee presies dieselfde doen as wat hy met die bul se bloed gedoen het. Hy moet ook daarvan op die grond en teen die deksel spat. Wanneer hy so maak, maak hy die deel agter die gordyn waar die Here is, en sommer ook die hele tent waar hulle die Here ontmoet, los van alles wat Israel verkeerd gedoen het en van al die sonde wat hulle teen die Here gedoen het. Van die oomblik af dat Aäron in die Here se deel agter die gordyn ingegaan het om vir hulle vrede by God te maak totdat hy weer daar uitkom, mag niemand anders in die tent kom waar hulle die Here ontmoet nie. “Nadat hy vir homself, sy gesin en die hele Israel vrede gemaak het met die Here, moet hy weer uitkom na die altaar toe en ook daar kom vrede maak. Hy vat van die bloed van die bul en van die bok en smeer daarvan reg rondom aan die horings van die altaar. Hy moet ook met sy vinger sewe keer van die bloed teen die altaar sprinkel. So maak hy die altaar skoon van al die vuilheid van Israel se sonde en skoon vir die Here. “Sodra Aäron die Here se spesiale deel agter die gordyn, asook die tent waar hulle die Here ontmoet en die altaar aan sy voorkant weer vir die Here afgesonder het, moet hy die bok wat nie geslag is nie, nader bring. Hy sit albei sy hande op die bok se kop. Terwyl sy hande op die bok se kop is, moet hy alles bely wat Israel verkeerd gedoen het. Hy moet sê hoe moedswillig hulle is en hoe dikwels hulle nie doen wat die Here van hulle vra nie. Hy dra al hierdie verkeerde dinge op die bok oor. Iemand wat daar reg staan, moet dan die bok weglei die woestyn in. Die bok dra dan al hulle oortredings weg na ’n plek waar daar nie mense is nie. Die man jaag die bok dan aan om nog dieper die woestyn in te gaan. “Aäron gaan dan weer terug na die tent toe. Hy trek die linneklere uit wat hy aangehad het toe hy in die afgesonderde deel agter die gordyn ingegaan het en los die klere daar. Hy gaan was hom op ’n plek wat daarvoor eenkant gehou word en trek weer sy gewone klere aan. Hy gaan terug en bring offers wat hy op die altaar verbrand namens homself en die volk. Daardeur word hy en die volk vergewe vir hulle sondes en kom daar weer vrede met die Here. Hy sorg dat die diere se vet heeltemal wegbrand op die altaar. “Wanneer die man wat die bok in die woestyn gaan injaag het, terugkom, moet hy eers sy klere en homself gaan was voordat hy weer in die kamp kan ingaan. Die karkasse van die bul en die bok wat vir die sonde geslag is en waarvan die bloed in die afgesonderde deel agter die voorhangsel gebruik is om vrede te bring moet dan uit die kamp weggevat word. Dit moet met vel, vleis, binnegoed en al daar buite die kamp verbrand word. Die persoon wat dit verbrand, moet na die tyd eers sy klere en homself was voordat hy weer in die kamp kan terugkom. “Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie. Op daardie dag word daar vir julle sondes betaal. Julle word vrygemaak van al die skuld van julle sonde en daar kom weer vrede tussen julle en die Here. Dit is ’n dag vir die Here waarop julle alles net so moet laat staan om te vas en julle voor God te verneder. Dit is ’n afspraak tussen julle en die Here wat vir elke jaar vas staan. Die dienaar wat die Here daarvoor aangestel het en sy seuns wat hom later opvolg in die diens van die Here, moet elke jaar al hierdie dinge doen om vrede met die Here te maak. Hy moet vir dié geleentheid sy spesiale klere aantrek en gaan vrede maak in die deel agter die gordyn wat vir die Here afgesonder is. Hy moet gaan vrede maak vir die hele tent waar die Here julle ontmoet en vir die altaar wat voor die tent staan. Hy moet ook vrede maak by die Here vir die mense wat by die tent werk en vir die hele volk. “Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees dat daar een maal elke jaar ’n dag van vergewing van sonde en vrede vir Israel sal wees.” Moses het presies gedoen soos die Here gesê het. Die Here het vir Moses gesê om vir Aäron en almal uit sy familie wat by die tent van die Here werk en vir al die Israeliete die volgende voorskrif vir offers te gee: [3-4] “Elkeen in Israel oortree wat nie sy offer daar by die ingang van die tent kom slag waar julle die Here ontmoet nie. Dit is verkeerd om ’n bees of ’n skaap of ’n bok sommer in die kamp of buite in die veld buite die kamp te offer. Dit is mors met bloed. Die persoon kan nie langer aan die volk behoort nie. *** “Die Israeliete moenie hulle offers buite in die veld bring nie. Hulle moet die offers vir die Here na die dienaar by die ingang van die tent bring. Hulle moet hulle goeie gesindheid teenoor die Here wys deur dit daar vir die Here te slag. Die dienaar sal van die dier se bloed teen die Here se altaar by die ingang van die tent sprinkel. Hy sal ook die vet van die offer op die altaar verbrand. Dit is iets waarvan die Here baie hou. “Die Israeliete moenie die rug vir die Here draai en vir gode in die veld offers bring nie. Dit is iets wat geheel en al verbied is vir altyd en altyd. [8-9] “Moses moet ook vir hulle sê dat enigeen uit Israel of uit ’n ander volk wat by hulle bly en nie sy offer by die ingang van die Here se tent bring nie, nie langer aan die Here se volk kan behoort nie. Dit is die reël vir die offer wat met vuur verbrand moet word en enige ander offer wat hy vir die Here bring.” *** “Ek wil niks te doen hê met enige Israeliet of iemand uit ’n ander land wat die bloed drink van die dier wat hy offer nie. Hy mag nie langer aan my volk behoort nie. Bloed beteken lewe. Dit is bloed wat maak dat daar lewe is. Ek het beveel dat julle die dier se bloed op die altaar moet gooi sodat julle self kan bly leef. Julle offer die bloed vir My en Ek gee in die plek daarvan vir julle julle eie lewe terug. Die dier se bloed maak julle vry van julle sonde en bring vrede tussen julle en My. “Ek het daarom die opdrag gegee dat geen mens uit Israel of die buitelanders onder hulle ooit die bloed van die offer mag drink nie. Enigiemand uit Israel of die buitelanders by hulle wat ’n dier of voël jag wat geëet mag word, moet eers die bloed op die grond laat uitloop en dit met grond toegooi. Omdat die lewe aan die bloed verbind is, het Ek die Israeliete verbied om die bloed van enige lewende wese te drink. Omdat die lewe van alle lewende wesens in hulle bloed is, sal elkeen wat dit drink, uit die volk verwyder word. “Enige inwoner of buitelander wat ’n dier eet wat vanself gevrek het of doodgebyt is, moet sy klere en homself gaan was. Eers aan die einde van die dag sal hy weer aanvaarbaar wees. As hy nie so maak nie, moet hy maar self die gevolge dra.” Die Here het nog verder vir Moses gesê om vir die Israeliete te sê: “Omdat Ek, die Here, julle God is, mag julle nie maak soos die mense van Egipte by wie julle gebly het nie. Julle moet ook nie leef soos die mense van Kanaän waarnatoe Ek met julle op pad is nie. Julle mag nie hulle gewoontes aanleer nie. Leef volgens my voorskrifte en hou by my reëls, want Ek, die Here, is julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Iemand wat na My luister, se lewe sal voorspoedig wees. Ek is die Here.” “’n Persoon mag nie seks hê met mense uit sy familie nie. Ek is die Here. Moenie jou pa in die skande bring en by jou ma slaap nie. Sy is jou ma en jy mag nie seks met haar hê nie. Jy mag ook nie by een van jou pa se ander vroue slaap nie. Dit is sy vrou. Jy mag ook nie by jou suster slaap nie. Dit maak geen verskil of dit jou halfsuster is aan jou pa se kant of aan jou ma se kant en of sy nou in dieselfde huis grootgeword het as jy of in ’n ander huis nie. Jy mag ook nie seks hê met jou kleindogter nie, of dit nou jou seun of jou dogter se kind is. Dis jou eie vlees en bloed. Met ’n dogter van een van jou pa se ander vroue mag jy ook nie seks hê nie. Jou pa is ook haar pa en sy is jou eie familie. [12-13] Jy mag ook nie by jou tannie slaap nie, of dit nou jou pa se suster of jou ma se suster is. Sy is julle bloedfamilie. *** Moenie jou oom in die skande bring en by sy vrou slaap nie. Sy is tog jou tannie. Los jou skoondogter uit, want dit is jou seun se vrou. Moenie met jou skoonsuster lol nie. Jy sal jou broer in die skande bring. Jy mag nie tegelyk ’n seksuele verhouding hê met ’n vrou en haar dogter of haar kleindogter nie, of dit nou aan haar seun of haar dogter se kant is. Hulle is haar bloedfamilie. Dit is lelik om so iets te doen. Moenie jou skoonsuster as byvrou neem terwyl jou vrou nog lewe nie. Moenie by ’n vrou kom wat menstrueer om by haar te slaap nie. Sy mag in daardie tyd nie by die Here se tent kom nie. Jy moet ook nie jouself in die skande bring en by iemand uit jou volk se vrou slaap nie. Jy mag nooit enige van jou kinders aan die afgod Molek gee en so jou God se Naam deur die modder sleep nie. Ek is tog mos die Here. Jy mag nie met ’n ander man seksueel verkeer nie. Dit is afstootlik. ’n Man moenie homself verwerplik maak en seksueel met ’n dier verkeer nie. ’n Vrou mag dit ook nie met ’n dier doen nie. Dit is ’n skande.” “Julle moenie julleself met enige van hierdie dinge vuil maak nie. Dit is omdat hulle hierdie soort goed doen dat Ek niks te make wil hê met die nasies wat Ek voor julle uit die land uit wegjaag nie. Selfs die land het vir my so vuil geword dat Ek dit moes skoonmaak met my straf. Die land gaan van sy inwoners ontslae raak asof hulle uit iemand se mond uitgespoeg word. “Julle moet by my reëls en my voorskrifte hou. Gebore Israeliete sowel as die buitelanders wat tussen julle woon, moet oppas om niks van hierdie lelike dinge te doen nie. Die mense wat voor julle in hierdie land gewoon het, doen hierdie soort dinge. Dit het die land met vuilheid besmet. Julle moet nie ook die land met verkeerde dinge laat vuil word sodat dit van julle ontslae moet raak soos dit die nasies voor julle uitgespoeg het nie. Enigiemand wat enige van hierdie gruwelike dinge aanvang, sal uit sy volk weggejaag word. Handhaaf die standaarde wat Ek gestel het, sodat julle nie dieselfde afskuwelike dinge doen waaraan die inwoners voor julle hulle skuldig gemaak het nie. Moenie julleself met daardie dinge verwerplik maak nie. Ek is die Here julle God.” Die Here het verder vir Moses beveel om vir die hele Israel te sê: “Julle moet net vir My lewe. Ek, die Here julle God, is die enigste God wat daar is. Elkeen moet vir sy ma en sy pa respek hê. Omdat Ek, die Here, julle God is, moet julle rus op die dae wat Ek daarvoor eenkant gesit het. Moenie agter afgodjies aanhardloop nie. Moenie vir julleself afgode maak nie, want Ek, die Here, is mos alreeds julle God. “Wanneer jy ’n offer vir die Here bring om te wys dat jou gesindheid teenoor Hom reg is, offer dit dan so dat die Here ook teenoor jou ’n goeie gesindheid kan hê. Eet die vleis van hierdie offer nog op dieselfde dag wat julle dit slag. Julle kan dit selfs nog op die dag daarna eet. As daar op die derde dag nog iets daarvan oor is, moet julle dit verbrand. Dit is nie vir My reg as daar nog op die derde dag van die vleis van die offer geëet word nie. Dit het dan alreeds sleg geword. Iemand wat dit eet, doen boonop sonde, want hy gebruik die offer wat vir die Here gebring is vir homself. Daar is nie plek vir sulke mense in my volk nie. Wanneer julle oes, moet julle nie alles tot op die kant van die land wegoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes op die grond bly lê het, agterna weer gaan optel nie. Julle moet ook nie julle wingerde kaal stroop tot op die laaste korrel nie. Moenie die druiwe wat geval het, gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir die vreemdelinge van ander plekke wat by julle bly. Ek is tog die Here julle God.” “Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie. Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here. Moenie jou medemens uitbuit en by hom steel nie. Betaal die tydelike werker wat jy hom skuld. Moenie dit terughou nie. Uit respek vir jou God mag jy nie ’n dowe persoon met minagting behandel nie. Jy moet ook nie iets in die pad van ’n blinde mens sit sodat hy daaroor val nie. Ek is die Here. Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel. Moenie loop en kwaadpraat oor ander nie. Moenie jou naaste se lewe bedreig nie. Ek is die Here. Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin verkeerd doen nie. Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee. Ek is die Here.” “Julle moet by my reëls hou. Moenie verskillende soorte diere met mekaar paar nie. Julle moet ook nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie. Julle moet ook nie klere dra wat van verskillende soorte materiaal gemaak is nie. Iemand anders se werker kan aan ’n ander man beloof wees. As iemand by haar slaap terwyl die ander man nog nie vir haar betaal het nie en haar eienaar het haar nog nie laat gaan nie, moet daar slegs vergoeding betaal word. Die twee hoef egter nie doodgemaak te word nie. Sy behoort nog steeds aan die oorspronklike eienaar. Die man wat by haar geslaap het, moet ’n ram vir sy skuld by die ingang van die Here se tent kom offer. Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het. “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God. “Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie. [27-28] Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here. *** Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word. “Wanneer dit ’n rusdag is, moet julle rus. Julle moet ook respek hê vir die plek waar mense My ontmoet om My te aanbid. Ek is die Here. Moenie hulp soek by spiritiste en die geeste van dooies nie. Dit maak julle vir My onaanvaarbaar. Ek is tog die Here julle God. Uit respek vir jou God moet jy staan wanneer daar oumense in die geselskap is. Jy moet hulle met agting behandel. Ek is die Here. [33-34] Moenie ’n buitelander wat tydelik by julle in die land bly, uitbuit nie. Behandel hom soos ’n gebore Israeliet. Jy moet vir hom omgee soos jy vir jouself omgee. Julle was immers in Egipte maar ook self buitelanders. Ek is die Here julle God. *** Moenie kul as julle iets moet afmeet of dit op ’n skaal weeg of die inhoud daarvan moet bepaal nie. Die skaal wat jy gebruik, die gewigte wat jy daarop sit en die houer waarin jy iets afmeet, moet korrek wees. Omdat Ek, die Here julle God, julle uit Egipte bevry het, moet julle my reëls en voorskrifte volg en volgens hulle optree. Ek is die Here.” Die Here het verder vir Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Enigeen uit Israel of uit die buitelanders wat tydelik in Israel bly wat sy kind aan die afgod Molek offer, moet beslis doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi. Ek verwerp so iemand en Ek beskou hom nie langer as deel van die volk nie. Wanneer hy sy kind vir Molek gee, het hy My goedkoop gemaak en my Naam deur die modder gesleep. As die volk toelaat dat iemand sy kinders aan Molek afstaan en hom nie doodmaak nie, sal Ek self teen hom en sy familie optree. Ek sal hom en elkeen wat saam met hom ontrou is aan My en agter Molek aanloop, uit die volk wegvat. Ek verwerp die persoon wat afdwaal en agter spiritiste en die geeste van dooies aanloop. Hy is nie meer een van die volk nie. Leef vir My met alles wat julle het. Wees aan My toegewyd, want net Ek, die Here, is julle God. Hou vas aan my reëls en leef volgens hulle, want Ek, die Here, het julle aan My alleen verbind.” “Wanneer enigiemand sy ouers met minagting behandel, moet hy doodgemaak word. Iemand wat op sy ouers neersien, mag nie bly leef nie. “As ’n man by ’n ander man se vrou slaap, moet hulle al twee doodgemaak word. As ’n man by een van sy pa se vroue slaap, bring hy sy pa in die skande. Al twee is skuldig en hulle moet doodgemaak word. As ’n man by sy skoondogter slaap, het hulle skande gemaak. Albei is skuldig. Hulle moet doodgemaak word. As ’n man seksueel met ’n ander man verkeer soos met ’n vrou, het hulle iets baie leliks gedoen. Hulle is al twee skuldig en al twee moet doodgemaak word. Dit is ’n skande as ’n man gemeenskap het met sy vrou sowel as sy skoonma. Hulle al drie moet met vuur verbrand word om sulke skandelike gedrag onder julle stop te sit. ’n Man wat seks het met ’n dier moet doodgemaak word en die dier moet doodgeslaan word. As ’n vrou met ’n dier verkeer, moet sy en die dier doodgemaak word. As ’n man en sy suster of halfsuster met mekaar afspreek en met mekaar seks het, moet hulle in die openbaar uit die volk weggejaag word. Die man het sy suster onteer en hy moet daarvoor verantwoordelikheid aanvaar. ’n Man en vrou wat met wedersydse instemming saamslaap terwyl sy besig is om te menstrueer, moet al twee van die volk afgesny word. Jy mag nie omgang hê met jou tannie nie, of dit nou aan jou pa of jou ma se kant is, want dit is bloedfamilie. Julle moet albei skuld aanvaar. Iemand wat by sy tannie slaap, bring skande oor sy oom. Die man en vrou moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle oortreding. Hulle sal doodgaan sonder om ooit kinders te hê. Dit is ’n skande as iemand sy broer se vrou afvry. Hy het skande oor sy broer gebring. Hulle sal nooit kinders hê nie.” “Hou stip by al my reëls en by al my riglyne, en lewe daarvolgens. Die land waarheen Ek julle vat om daar te gaan woon sal julle dan nie uitspoeg nie. Moenie die gewoontes aanleer van die nasies wat Ek voor julle uit verdryf nie. Ek het ’n weersin in hulle omdat hulle hierdie dinge doen. Ek het julle belowe dat julle die land sal besit. Ek self skenk dit aan julle dat dit julle besitting kan word. Dit is ’n land waarin daar meer as genoeg is van alles. Dit is ook Ek, die Here julle God, wat julle tussen al die nasies uitgesoek het om julle aan My te verbind. Julle moet ook onderskei tussen die diere wat aanvaarbaar is om te eet en dié wat nie reg is nie. Onderskei tussen die voëls wat vir My reg is en dié wat Ek nie wil hê julle moet eet nie. Julle moenie julleself afstootlik maak en gaan staan en eet van die diere of voëls of reptiele wat op die grond rondkruip wat Ek vir julle uitgewys het nie. Julle moet op so ’n manier leef dat dit duidelik is dat julle aan My behoort en vir My leef. Ek is die Here. Ek is die enigste God. Ek het julle onder die nasies uitgesoek om aan My te behoort. Enige man of vrou wat met die geeste van dooies probeer praat of waarsêery probeer beoefen, moet met klippe doodgegooi word. Hulle het self hulle doodstraf oor hulle gebring.” Die Here het vir Moses gesê dat hy vir die mense uit Aäron se familie wat vir Hom by die tent werk, moet waarsku. “Hulle moet nie hulleself onbruikbaar vir hulle werk maak en aan iemand uit die volk wat dood is, se lyk vat nie. Die dienaar mag wel aan die lyk van sy naaste familie vat, soos dié van sy ma of sy pa, sy seun of sy dogter, sy broer of sy suster, mits sy nooit getroud was nie. Hy mag egter nie aan die lyk van sy vrou of haar familie raak nie. Dit sal hom onbevoeg maak vir sy werk. God se dienaars mag ook nie soos die ongelowiges ’n kaal kol op hulle kop afskeer of die kant van hulle baard wegsny of merke op hulleself uitkerf wanneer hulle oor dooies rou nie. Hulle moet heeltemal toegewyd wees aan hulle God en hulle moenie iets doen wat sy Naam oneer sal aandoen nie. Hulle moet op ’n manier leef wat wys dat hulle met alles aan die Here behoort. Dit is hulle werk om die offers vir die Here te bring en sy offerdiens by die tent aan die gang te hou. Iemand wat by die Here se tent werk, mag nie met ’n prostituut trou of met ’n vrou wat in die skande gekom het nie. Hy mag ook nie met ’n vrou trou wat van haar man geskei is nie. Hy moet afgesonder en aan sy God toegewy leef. Omdat hy die een is wat die offer vir God bring, moet jy hom respekteer as een wat net vir God leef. Jy moet hom behandel as iemand wat aan God behoort. Ek, die Here, is die enigste God. Ek verbind julle aan My sodat julle aan niemand anders behoort nie. As die dienaar by God se tent ’n dogter het wat ’n prostituut geword het, bring dit haar pa in die skande. Sy moet met vuur verbrand word.” “Die persoon wat aangestel is om die leier van die dienaars by die Here se tent te wees en die spesiale klere daarvoor dra, mag nie sy hare los laat hang of sy klere skeur wanneer hy treur oor iemand wat dood is nie. Hy mag nie sy belangrikheid verminder en naby enige dooie mens kom nie. Selfs nie eens as sy pa of ma dood is, mag hy by die tent van die Here weggaan nie. Dit sal die Here se plek iets alledaags maak. Hy is tog anders. Die Here het hom spesiaal aangestel vir sy werk. Ek is die Here. Hy mag net met ’n vrou trou wat nog nie by ’n man geslaap het nie. Sy mag ook net uit sy eie volk kom. Hy mag glad nie met ’n weduwee trou, of met ’n geskeide vrou of een wat in die skande gekom het, of een wat ’n prostituut is nie. As hy met een van hulle sou trou, mag die kinders wat hy by die vrou kry, glad nie by die Here se tent kom werk nie. Ek is die Here. Ek het hom aan My alleen toegewy.” Die Here het verder vir Moses gesê om Aäron te beveel dat niemand uit sy nageslag wat ’n fisieke gebrek het, ooit die offers by die tent mag bring nie. “Iemand wat blind is, of kreupel of gebreklik is aan sy lyf, verlam is aan sy voet of sy hand, wat ’n boggelrug het of ’n dwerg is, of ’n pêrel oor sy oog het, of ekseem of skurfsiekte het, of ’n verminkte geslagsdeel het, mag nie die offer by die Here se tent vir Hom bring nie. Enige man uit Aäron se nageslag wat enige van hierdie probleme het, mag nie nader kom en by die tent die offer vir die Here bring nie. Sy gebrek verbied dit dat hy God se offer bring. Hy mag egter saam met die ander dienaars in sy familie van die offers eet wat vir die Here gebring is, selfs ook van die spesiale offers. Omdat hy gestremd is, mag hy egter glad nie naby die gordyn in die tent of by die altaar kom nie. Ek, die Here, het my tent afgesonder en dit iets spesiaals gemaak. Hy sal afbreuk daaraan doen as hy daar kom.” Moses het dit toe aan Aäron en sy seuns en al die Israeliete oorgedra. Die Here het ook nog verder vir Moses gesê om vir Aäron en sy seuns te waarsku om die offers wat die Israeliete vir die Here bring, met groot versigtigheid te hanteer. “Hulle dra die verantwoordelikheid vir die volk se offers aan die Here. Hulle moenie deur die manier waarop hulle optree die Naam van die Here gaan sleg maak nie. Ek is tog die Here.” Moses moes vir hulle sê: “Enigeen onder julle of julle kinders wat met die offers werk wat die Israeliete vir die Here bring terwyl hy nie reg is daarvoor nie, sal uit sy werk weggevat word. As iemand uit Aäron se familie ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding het, mag hy nie van die offers eet voor hy gesond geword het nie. ’n Dienaar is nie reg vir sy werk as hy aan ’n dooie ding gevat het nie. Hy is ook nie reg as hy saad gestort het of geraak het aan enige kruipende insek wat hom kan besoedel nie. Wanneer hy aan ’n ander mens gevat het en sy onreinheid op hom oorgedra het, is hy ook nie reg nie. Hy moet vir die res van die dag wegbly van die Here se tent af. Hy mag in daardie tyd ook nie van die offers eet nie. Nadat hy homself gewas het en die son ondergegaan het, is hy egter weer reg vir sy werk. Hy mag dan weer van die offers eet, omdat dit die enigste kos is vir die dienaars. Die dienaars moenie ’n dier eet wat vanself gevrek het of wat deur ander diere verskeur is nie. Dit maak dat hy nie reg is om sy werk te doen nie. Ek is die Here. Die dienaars moet doen soos die Here sê. Hulle moet nie die Here se opdragte belaglik maak nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek is die Here wat hulle aan my diens toegewy het.” “Iemand wat nie by die Here se tent werk nie, mag nie van die offers eet nie. Iemand wat by hom in sy huis woon en iemand wat vir hom werk, mag ook nie daarvan eet nie. Die slawe wat hy vir homself gekoop het en dié wat in sy huis gebore is, mag wel saam met hom sy deel van die offer eet. As sy dogter met iemand trou wat nie ook by die tent werk nie, mag sy nie langer saam eet aan sy deel van die offers nie. As sy dogter ’n weduwee word of van haar man skei, en sy het geen kinders nie en sy kom bly weer by haar pa soos toe sy nog ’n afhanklike kind was, mag sy saam met haar pa van sy deel eet. Iemand wat nie uit Aäron se familie is nie, mag egter glad nie van die offers eet nie. As iemand van die offers geëet het sonder om te weet dat dit offervleis is, moet hy dit vir die dienaar by die tent vergoed en 120% van die waarde daarvan vir hom teruggee. Die dienaars mag op geen manier toelaat dat die offers wat die Israeliete vir die Here bring, verkeerd gebruik word nie. As hulle ander mense toelaat om daarvan te eet, sal Ek hulle daarvoor verantwoordelik hou. Ek, die Here, het die dienaars Myne alleen gemaak.” Die Here het ook nog vir Moses gesê om vir Aäron en sy seuns en vir die Israeliete te sê: “Wanneer enige Israeliet of enige van die mense wat by hulle bly, ’n offer vir die Here bring, óf om sy belofte na te kom óf bloot net vrywillig, en hy wil hê dat die Here dit moet aanvaar, moet dit ’n bul of ’n skaapram of ’n bokram wees wat nie enige foute het nie. Julle moenie ’n dier bring wat iets makeer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie. “As iemand ’n offer vir die Here bring om sy beloftes na te kom of gewoon net om sy goeie gesindheid vir die Here te wys, moet dit ’n gesonde dier uit die beeste of die kleinvee wees. As ’n dier iets makeer, gaan dit beslis nie vir die Here reg wees nie. Julle mag nie vir die Here diere bring wat blind, beseer of vermink is, wat oop sere het, wat brandsiek is of sere op sy vel het nie. Julle mag nie sulke diere vir die Here bring nie. As dit sommer ’n vrywillige offer is, mag julle wel ’n bees of ’n skaap bring wat misvormd is of onderontwikkeld is. Julle mag egter nie met sulke diere julle beloftes nakom nie. “Julle mag nie ’n gekastreerde dier, of dit ’n os of ’n hamel is, vir die Here offer nie. Dit mag nie in julle land gebeur nie. Julle mag ook nie gekastreerde diere van uitlanders koop en vir julle God offer nie. Hulle is vermink. Die Here sal hulle nie van jou aanvaar nie.” Die Here het verder ook nog vir Moses gesê: “’n Kalf of skaaplam of boklam wat gebore word, moet eers sewe dae lank by sy ma bly. Van die agtste dag af mag dit by haar weggevat word en as ’n offer vir die Here gebruik word. Julle mag egter nie ’n lam en sy ma op dieselfde dag offer nie. Wanneer julle ’n offer vir die Here bring om vir Hom dankie te sê, moet julle dit so offer dat Hy dit sal aanneem. Julle moet julle deel van die offer nog op dieselfde dag opeet. Julle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende dag nie. Ek is die Here. Doen soos Ek vir julle sê en leef soos Ek van julle vra. Ek is die Here. Moenie my hoë Naam belaster nie. Die Israeliete moet onthou dat Ek die enigste God is. Ek is die Here. Ek het julle vir My afgesonder. Ek het julle uit Egipte gebring om julle God te wees. Ek is die Here.” Die Here het verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Hier is my feesdae. Julle moet op hierdie dae vir My bymekaarkom.” “Die sewende dag is die Here se dag. Julle moet ses dae lank julle gewone werk doen. Die sewende dag moet julle daarmee ophou, sodat julle byeenkomste vir My kan hou. Julle mag dan nie aangaan met julle werk nie. Dit is die Here se sabbatdag. Julle moet dit hou waar julle ook al woon. “Naas die sabbatdag is daar nóg vaste feesdae van die Here waarop julle byeenkomste vir My moet hou.” “Die paasfees vir die Here is in die lente. Dit begin net na sononder op die veertiende dag van die eerste maand. Op die volgende dag, die vyftiende dag, begin die fees van die brode waarin daar nie suurdeeg is nie. Sewe dae lank moet julle brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie om die Here te vereer. Op die eerste dag van die fees moet julle ophou met alles waarmee julle besig was en voor die Here bymekaarkom. Op elkeen van die volgende sewe dae moet julle vir die Here ’n offer bring wat verbrand word. Op die sewende dag moet julle weer ophou met al julle werk en weer vir die Here bymekaarkom.” Die Here het verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle eendag in die land woon wat Ek aan julle gaan gee en julle begin daar oeste insamel, moet julle die eerste gerf graan wat julle afsny na my tent bring. Die dienaar by die tent moet dit op die eerste dag na die sabbatdag vir die Here gaan gee sodat die Here julle goedgesind kan wees. Julle moet tegelyk daarmee saam ook vir die Here ’n gesonde lam van ’n jaar oud bring om te offer, ’n offer uit die graan van drie kilogram meel wat met olie gemeng is - waarvan die Here so baie hou - en ’n offer van een liter wyn. Dit moet ’n vaste gebruik by julle en julle nageslag wees dat julle niks van die oes sal eet - of dit gebak, gebraai of rou is - voordat julle eers julle offer vir God gebring het nie.” “Van die dag af nadat julle die eerste gerf graan kom offer het, moet julle ’n volle sewe weke aftel tot op die 50ste dag. Dit is die eerste dag na die sewende sabbat. Op daardie dag moet julle weer ’n offer vir die Here bring uit die graan wat so pas geoes is. Van oral waar julle woon, moet julle brood bring om vir die Here te offer. Dit moet van drie kilogram meel gebak wees. Hierdie keer moet julle dit bak met suurdeeg in. Dit is ’n offer vir die Here van die eerste opbrengs van die oes. Bo en behalwe die brood moet julle ’n offer vir die Here bring van sewe jaaroud lammers sonder foute, ’n jong bul en twee ramme. Saam met die offers uit die graan en die offer van wyn, is dit ’n offer wat vir die Here verbrand word waarvan Hy besonder baie hou. Julle moet ook ’n bokram vir die sonde offer en twee jaaroud lammers om saam met die Here te eet. Die dienaar sal die lammers saam met die brood uit die eerste opbrengs van die oes aan die Here opdra. Dit word aan die Here gewy. Sy dienaars mag ook daarvan eet. Presies op daardie 50ste dag moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle moet ophou met al julle werk. Dit is ’n vaste afspraak elke jaar vir julle en julle nageslag, waar julle ook al woon. Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie alles tot op die buitenste rand afoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes bly lê het, agterna gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir dié wat as vreemdelinge by julle bly. Ek is tog die Here julle God.” Die Here het verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Die eerste dag van die sewende maand is die feesdag van herinnering. Die trompet sal blaas en dan moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle mag nie op daardie dag met julle gewone werk aangaan nie. Julle moet vir die Here ’n offer bring wat verbrand kan word.” Die Here het verder ook nog vir Moses gesê: “Die jaarlikse dag waarop daar vrede tussen My en julle kom, is op die tiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dan weer vir My bymekaarkom. Julle moet op daardie dag niks eet nie en oor julleself nadink. Julle moet ook weer offers vir die Here bring wat op die altaar verbrand word. Op hierdie spesifieke dag moet julle ook julle werk laat staan, want dit is ’n dag van vrede waarop julle sonde vergewe word en julle vrede kry by die Here. Enige persoon wat op hierdie bepaalde dag nie ophou eet en voor God kom buig nie, hoort nie langer by my volk nie. Ek sal enigiemand wat op daardie dag aangaan met sy werk uit my volk verwyder. Dit moet ’n vaste reël vir julle en julle nageslag wees, waar julle ook al bly, dat daar op dié bepaalde dag glad nie gewerk mag word nie. Die dag van vrede moet ’n dag wees waarop julle julleself van alles losmaak en voor God kom neerbuig. Dit moet begin op die aand van die negende dag en aangaan tot die aand van die tiende dag.” Die Here het ook nog verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Die fees van die hutte is op die vyftiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dit sewe dae lank tot eer van die Here vier. Julle moet op die eerste dag vir die Here saamkom. Julle moet op daardie dag ook al julle werk laat staan. Vir die volgende sewe dae moet julle elke dag vir die Here ’n offer bring. Die agtste dag is ’n besondere feesdag. Julle moet op daardie dag weer bymekaarkom en vir die Here nog ’n offer bring. Julle moet ook op hierdie dag julle werk laat staan.” “Dit is dan al die feesdae van die Here. Op hierdie dae moet julle byeenkomste hou. Bring vir die Here offers wat verbrand word, offers wat op die altaar gebring word, offers wat julle saam met die Here eet en ook offers van wyn soos dit vir elkeen van die feesdae bepaal is. Die dae moet gevier word bo en behalwe die gereelde rusdae van die Here op elke sewende dag. Die offers wat julle by die feeste bring, kom nog by die geskenke en die offers wat julle vir die Here belowe het en by die vrywillige offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Wanneer die fees van die hutte op die vyftiende van die sewende maand begin, is dit ook die tyd dat julle die vrugte van die land begin oes. Dit is dan dat julle sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agtste dag is rusdae. Op die eerste dag moet julle takke van vrugtebome, palmtakke, takke van bome met digte blare en takke van rivierwilgers afpluk. Dan moet julle sewe dae lank feesvier voor die Here julle God. Dit moet vir julle en julle nageslag ’n vaste gebruik wees dat julle elke jaar in die sewende maand sewe dae lank hierdie fees vir die Here vier. Elke gebore Israeliet bly dan sewe dae lank in die hutte wat julle met die takke gebou het. Dit sal julle nageslag daaraan herinner dat Ek die Israeliete in hutte laat bly het toe Ek hulle uit Egipte uit weggevat het. Ek is die Here julle God.” So het Moses dan die Israeliete oor die feesdae van die Here ingelig. Die Here het gesê Moses moet by die Israeliete suiwer olyfolie vra om die lampe in die tent aan die brand te hou. “Aäron moet sorg dat daar elke nag ’n lamp is wat in die tent van samekoms brand, in die deel voor die gordyn wat die deel afskort wat vir die Here afgesonder is. Dit moet altyd aan die brand gehou word. Hy moet ook kyk dat die lampies op die goue kandelaar gereeld brand. Hy moet ook twaalf brode bak. Elkeen moet gebak word van drie kilogram fynmeel. Hy moet die brood op die goue tafel voor die Here in twee stapels pak wat elkeen ses brode het. By elke stapel brood moet hy suiwer wierook neersit. Die wierook word vir die Here geoffer in die plek van die brood self. Elke sewende dag moet die dienaars weer nuwe brood daar gaan neersit. Dit moet gereeld gedoen word. Aäron en sy seuns mag dan die ou brood wegvat en gaan eet op ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Die brood word net vir die Here se werk gebruik en vir niks anders nie. Aäron mag dit vat uit die offers wat vir die Here gebring word. Dit is ’n reël wat vasstaan.” ’n Man wat ’n Israelitiese ma gehad het en ’n Egiptiese pa, het eenmaal in die kamp aan die baklei geraak met ’n Israelitiese man. Sy ma se naam was Selomit. Sy was Dibri se dogter. Hulle was uit die stam van Dan. Haar seun het gevloek en die Here se Naam gebruik asof dit sommer iets alledaags is. Die ander mense het hom toe na Moses gevat. Hulle het hom opgesluit sodat Moses vir die Here kon vra wat hulle met hom moes doen. Die Here het toe vir Moses gesê: “Vat die man wat gevloek het uit die kamp uit. Elkeen wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hand op sy kop sit om te wys dat hy skuldig is. Daarna moet almal hom met klippe doodgooi. Sê dan vir die Israeliete: Enigiemand wat God se Naam sommerso gebruik sonder eerbied vir die Here, moet daarvoor boet. As ’n Israeliet of iemand van ’n ander plek die Here vloek, sal hy sonder meer doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi. “As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word. As hy iemand se been breek, word sy been gebreek. As hy iemand se oog beskadig, word sy oog ook beskadig. As hy iemand se tand uitslaan, word sy eie tand uitgeslaan. Hy word presies met gelyke munt terugbetaal vir die skade wat hy gedoen het. As hy ’n dier doodmaak, kan hy nog daarvoor vergoed, maar as hy ’n mens doodmaak, moet hy met sy eie lewe betaal. Daar is net een wet vir almal. Die gebore Israeliet en die buitelander word presies eenders behandel. Ek is die Here. Ek is julle almal se God.” Moses het toe uitspraak in die saak gelewer en die Israeliete het die man wat gevloek het, uit die kamp uitgevat en hom daar met klippe doodgegooi. Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses beveel het. Terwyl Moses bo-op Sinaiberg was, het die Here vir hom gesê om die Israeliete te beveel: “Wanneer julle in die land gaan bly wat Ek vir julle sal gee, moet die land ook rus. Daar moet ’n sabbatsjaar wees vir die Here. Jy mag ses jaar lank op die lande saai en die wingerde bewerk en oeste insamel. In die sewende jaar moet die boerdery heeltemal gestaak word. Daardie jaar is die Here se sabbatsjaar. Jy moet daardie jaar niks op die lande saai nie en glad nie die wingerde bewerk nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, oes nie. Julle mag ook nie die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie. Dit moet vir die land ’n jaar van volkome rus wees. [6-7] Julle moet die grond kans gee om te rus. Jy en die slaaf wat vir jou werk, jou slavin, jou tydelike werker, dié wat by jou woon en die buitelanders wat by jou is, jou vee en al jou diere, julle almal sal daardie jaar eet van die dinge wat die land op natuurlike wyse oplewer.” *** “Tel sewe sabbatsjare af, dit wil sê sewe tye wat elkeen sewe jaar lank is, sodat dit uitwerk op ’n volle 49 jaar. Op die tiende dag van die sewende maand in die 50ste jaar, die dag wat die Here vrede gee, moet julle op die trompette blaas. Kondig deur die hele land aan dat julle daardie jaar aan die Here moet opdra. Julle moet dan bekendmaak dat al die inwoners daardie jaar alles kan terugkry wat vroeër aan hulle behoort het. Elkeen kan dan weer teruggaan na die grond wat hy oorspronklik besit het. Elke slaaf word vrygemaak en hy kan teruggaan na sy eie familie toe. In hierdie hersteljaar mag julle niks saai nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, afoes of die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie. Dit moet vir julle ’n spesiale jaar wees waarin alles weer herstel. Julle mag net eet wat die veld oplewer. In die hersteljaar kan elkeen teruggaan na die grond wat hy vantevore besit het. As julle in ander jare grond aan mekaar verkoop of van mekaar koop, moet julle mekaar nie verkul nie. As jy by iemand grond koop, moet jy uitreken hoeveel jare al verbygegaan het na die laaste hersteljaar. As jy dit aan ’n ander verkoop, moet jy bereken hoeveel jare se oes daar nog oor is na die volgende hersteljaar toe. Hoe meer jare oor is, hoe hoër is die koopprys. As daar minder jare oor is, is die verkoopprys soveel minder. Eintlik is dit nie grond wat jy koop en verkoop nie, maar die aantal oeste wat dit kan oplewer. Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis. “Moenie staan en wonder waar julle kos gaan kry in die sewende jaar as julle nie mag saai of die oes mag insamel nie. Ek sal julle in die sesde jaar so voorspoedig maak en die oes so groot laat wees dat dit drie jaar lank sal hou. Julle sal in die agtste jaar saai, maar nog steeds kan eet van die oes wat in die sesde jaar ingekom het. Julle sal selfs daarvan kan eet tot die oes van die graan wat julle in die agtste jaar gesaai het, eers teen die negende jaar begin inkom. “Grond mag nooit vir altyd verkoop word nie, want dit behoort eintlik aan My. Julle is bloot vreemdelinge en mense wat tydelik op my grond bly. Wanneer en waar ook al julle in die land grond verkoop, moet daar altyd ooreengekom word dat die oorspronklike eienaar dit kan terugkoop. Wanneer een van jou landgenote bankrot speel en sy erfgrond moet verkoop om sy skuld te betaal, moet sy naaste familielid kom en dit vir hom terugkoop. As iemand nie so ’n familielid het nie, en hy kry dit reg om self genoeg geld bymekaar te kry om sy grond terug te koop, moet hy uitwerk hoeveel tyd verbygegaan het vandat hy die grond verkoop het en hoeveel gebruiksjare daar nog vir die koper oor is tot die volgende hersteljaar. Sodra hy betaal het, kan hy weer teruggaan na sy grond toe. As hy nie genoeg geld bymekaar kan kry nie, bly die grond in besit van die een wat dit gekoop het tot by die hersteljaar. In die hersteljaar mag die oorspronklike eienaar teruggaan na sy eiendom. “Iemand wat ’n woonhuis in ’n stad verkoop wat ’n veilige muur om het, behou vir een volle jaar die reg om dit terug te koop. As hy nie sy reg om terug te koop binne daardie jaar gebruik nie, word die huis die permanente eiendom van die koper. Dit word deel van sy boedel. Dit word nie teruggegee in die hersteljaar nie. Huise in dorpe wat geen veiligheidsmuur om het nie, is deel van die platteland. Die persoon wat dit verkoop het, mag dit terugkoop. In die hersteljaar gaan dit terug na sy oorspronklike eienaar. “Leviete het vir altyd die reg om in die stede wat aan hulle behoort die huise wat hulle verkoop het, terug te koop. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.” “As een van die ander Israeliete agteruit begin boer en hy raak so diep in die skuld dat hy nie meer daar kan uitkom nie, moet jy hom help. Staan hom by soos jy iemand wat van ’n ander land af kom, of iemand wat by jou woon, sou help om aan die lewe te bly. Jy moenie rente vra of heffings bysit by die geld wat hy van jou geleen het nie. Uit respek vir jou God moet jy na hom omsien. Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie. Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees. “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie. Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe. Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie. Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie. “Jy mag wel manlike of vroulike slawe besit wat vir jou werk. Jy moet hulle by julle buurvolke gaan koop. Jy mag ook die kinders van buitelandse werkers wat by jou woon en die kinders van hulle families wat in jou land gebore is, vir slawe aankoop. Hulle word deel van jou roerende goedere. Jy kan hulle in jou testament aan jou kinders bemaak as hulle eiendom. Hulle is lewenslank hulle slawe. Een Israeliet mag egter nie ’n ander Israeliet met geweld oorheers nie. “As ’n buitelander, of iemand wat met ’n werkspermit by julle woon, so ryk word dat ’n ander Israeliet naderhand so diep in die skuld by hom raak dat hy homself as slaaf aan daardie persoon moet aanbied, bly dit steeds moontlik dat hy vrygekoop kan word. ’n Ander Israeliet, sy oom of sy neef of enige van sy ander familielede kan hom loskoop en sy skuld kom betaal. Hy mag selfs ook die geld iewers in die hande kry om homself uit sy skuld uit te koop. Hy en sy eienaar moet die bedrag bereken volgens die betaling wat ’n dagwerker kry. Hulle trek dan die jare diens wat hy reeds gelewer het sedert hulle die ooreenkoms gesluit het af van die jare diens wat hy nog moet lewer tot die volgende hersteljaar toe. Hoe meer jare daar nog oor is tot by die hersteljaar, hoe groter is die bedrag wat hy moet betaal. As daar maar net ’n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die aflosbedrag baie kleiner wees. Die buitelander moet hom behandel soos ’n huurarbeider wie se kontrak jaarliks hernu word. Julle moet toesien dat hy nie die Israeliet gewelddadig behandel nie. As hy nie voor die tyd op die een of ander manier losgekoop is nie, moet hy en sy kinders in elk geval in die hersteljaar vrygestel word. “Die Israeliete werk vir My. Ek het hulle uit Egipte laat wegtrek sodat hulle My kan dien. Ek is julle God, die Here.” “Julle mag nie in julle land vir julleself afgodjies maak wat julle gebruik om gode te aanbid nie. Julle mag ook nie uitgekerfde beelde hê, of klippilare oprig, of klippe hê waarop julle beelde van gode uitgegraveer het nie. Ek, die Here, is mos reeds julle God. Julle moet my rusdae vier en respek hê vir die tent waar julle My ontmoet. Ek is die Here.” “As julle volgens my reëls lewe en die dinge doen wat Ek julle beveel en in lyn daarmee optree, sal Ek dit betyds laat reën. Daar sal oeste wees op die lande en vrugte aan die bome. Julle oesseisoen sal aanhou tot dit weer tyd is om druiwe te pluk. Julle druiweoes sal aanhou tot dit tyd is om weer koring te saai. Julle sal oorgenoeg kos hê en julle sal gerieflik in julle land bly. Ek sal sorg dat daar vrede in julle land is sodat julle rustig kan slaap in die nag. Ek sal die gevaarlike diere uit julle land laat verdwyn. Ek sal julle teen die aanvalle van julle vyande beskerm. Trouens, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle wapens afmaai. Net vyf van julle sal nodig wees om 100 van hulle te agtervolg. Honderd sal 10 000 vyande agternasit en hulle van die gras af maak. Ek sal goed wees vir julle. Ek sal maak dat julle baie mense word. So sal Ek my ooreenkoms met julle nakom. Julle sal nog van die vorige jaar se graan eet wanneer dit weggegooi sal word om plek te maak vir die graan van die nuwe oes. Ek sal onder julle woon. Ek sal julle nie minag nie. Ek sal saam met julle bly. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Ek is die Here, julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle nek afgedruk het, stukkend gebreek sodat julle weer regop kan loop.” “Aan die ander kant kan dit gebeur dat julle julle nie aan My steur nie en nie hierdie dinge doen wat Ek julle beveel het nie. Julle kan my verbintenis met julle in die wiele ry omdat julle my reëls oortree. Julle kan soveel aanstoot neem aan my voorskrifte dat julle weier om my bevele uit te voer. As julle dit doen, sal Ek die volgende dinge met julle laat gebeur: Ek sal verwarring onder julle saai. Ek sal tering en koors tussen julle laat kom wat julle blind sal laat word en sal laat wegkwyn. Julle sal verniet saai, want julle vyand sal dit opeet. Ek sal my rug vir julle draai en julle vyand sal julle verpletter. Die mense wat julle haat, sal julle so sleg behandel dat julle sal begin vlug sonder dat daar eens iemand is wat julle jaag. “As julle na hierdie dinge gebeur het, nog nie bereid is om julle aan My te steur nie, sal Ek julle nog sewe keer erger straf vir julle oortredings. Omdat julle te veel van julleself dink, sal Ek julle siek maak. Ek sal die lug maak soos ’n ysterkoepel waaruit geen reën kan val nie. Die aardkors sal so ondeurdringbaar wees soos ’n bronsplaat. Julle sal verniet julle vernuf inspan, want julle sal nie uit die grond enige oes kan haal nie. Geen boom van die aarde sal vrugte oplewer nie. “As julle dan met My wil rusie maak en julle steeds onwillig bly om julle aan My te steur, sal Ek in lyn met julle oortreding nog sewe ander rampe oor julle loslaat. Ek sal roofdiere tussen julle los laat rondloop. Hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Julle getalle sal so erg daal dat daar niemand meer op die paaie sal wees nie. “As julle na al hierdie dinge steeds aanhou om My teen te staan en weier om iets van My te leer, sal Ek ook teen julle draai en julle persoonlik nog sewe keer meer straf vir julle oortreding. Ek sal wraak neem omdat julle julle nie aan My verbintenis met julle gesteur het nie. Ek sal oorlog teen julle laat uitbreek. As julle in julle stede gaan probeer wegkruip, sal Ek maak dat daar siekte onder julle uitbreek. Julle sal die knie voor die vyand moet buig. Ek sal julle kos so min laat word dat tien vroue skaars genoeg bymekaar kan kry om in een oond vir julle brood te bak. Hulle sal julle kos so moet rantsoeneer dat julle nie versadig kan kom van wat julle te ete kry nie. “As julle selfs dan nog voortgaan om julle nie aan My te steur nie en julle steeds teen My bly verset, sal Ek my woede op julle loslaat en julle nog sewe keer meer straf vir julle oortreding. Julle sal so honger word dat julle julle eie kinders sal begin eet. “Ek sal die plekke waar julle offer, met die grond gelykmaak. Ek sal die altare afbreek waarop julle wierook offer. Ek sal julle lyke op julle vrot afgodsbeelde gooi. Ek sal so ’n renons in julle hê dat Ek van julle stede ashope gaan maak en van julle aanbiddingsplekke verlate ruïnes. Ek stel nie meer belang in julle offers nie. Ek gaan hierdie land so verwoes dat julle vyande wat daar kom woon, verbysterd sal staan oor die skade wat in die land aangerig is. Julleself sal Ek soos saad uitstrooi tussen die nasies in. Ek sal oorlog agter julle aanstuur. Julle land sal ’n Godverlate plek word en julle stede ashope. Al die jare wat die grond onbewerk gaan lê terwyl julle in die land van julle vyande bly, sal die land kan rus kry. Dit sal die sabbatsjare inhaal wat dit verloor het. Dit sal in daardie tyd die rus kry wat julle dit nooit tydens die sabbatsjare gegun het nie. Ek sal dié van julle wat in die vyand se land oorgebly het, so senuweeagtig maak dat bloot net die geritsel van ’n droë blaar hulle op loop sal jaag. Hulle sal die hasepad kies asof iemand met ’n swaard agter hulle aan is. Hulle sal op die grond neerslaan sonder dat daar werklik iemand is wat hulle jaag. Hulle sal so bang wees vir die lem van die swaard dat hulle oor mekaar sal val om weg te kom van iemand wat nie eers daar is nie. Julle sal nie in staat wees om julle vyand in die oë te kyk nie. Julle sal by die heidennasies doodgaan. Julle vyand se land sal julle insluk. Dié van julle wat oor is, sal in julle vyand se land uitsterf as gevolg van julle en julle ouers se sondes.” “Dan sal julle julle sondes en dié van julle ouers bely. Julle sal erken dat julle nie aan My getrou was nie en dat julle My so uitgetart het dat Ek teen julle moes draai. Ek moes julle na julle vyande se land laat wegvoer om te sien of julle nie miskien julle gesindheid sal verander en julle sonde weer sal regmaak nie. As julle dit sou doen, kon Ek weer my verbintenis aan Jakob, Isak en Abraham in gedagte roep en weer van die land onthou. Julle sal egter eers uit die land moet weggaan. Julle sal die straf vir julle skuld moet dra. In die tyd dat julle weg is en die grond net so onbewerk lê, sal die land die agterstallige rusjare inhaal. Ten spyte egter van al hierdie dinge, selfs al is julle gevangenes in die land van julle teëstanders, sal Ek julle nie so weggooi en julle nie so minag dat Ek my verbintenis met julle heeltemal sal opsê nie. Ek is tog julle God, die Here. Ek het julle uit Egipte laat trek terwyl die ander nasies dit gesien het. Ek sal onthou dat Ek beloof het om julle God te wees. Ek is tog die Here.” Dit is al die reëls en die voorskrifte wat die Here tussen Hom en die Israeliete deur Moses daar op die Sinaiberg neergelê het. Die Here het deur Moses vir die Israeliete gesê: “As ’n persoon iemand anders aan die Here beloof het en hy wil sy gelofte nakom, maar hy wil eerder geld vir die Here gee as die persoon self, moet dit soos volg bereken word: vir ’n manspersoon tussen twintig en 60 jaar oud moet hy 50 stukke geld gee. Dit is volgens die bepaling van die dienaars by die tent hoeveel elke stuk werd is. Vir ’n vrou gee hy 30 stukke. Die afkoopprys vir iemand tussen vyf jaar en twintig jaar oud is twintig stukke vir ’n manspersoon en tien vir ’n meisie. Tussen ’n maand oud en vyf jaar oud is die bedrag vyf stukke vir die seuntjie en drie vir die dogtertjie. Die bedrag vir ’n man bo 60 is vyftien stukke en vir ’n vrou bo dieselfde ouderdom is dit tien stukke. “As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.” “As hy ’n dier wat geskik is om geoffer te word aan die Here beloof het, behoort dit geheel en al aan die Here. Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort. As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word om dit te waardeer. Hy bepaal die bedrag wat vir die dier betaal moet word, en daaroor word nie verder gekibbel nie. As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.” “Wanneer iemand belowe het om sy huis vir die Here te gee, moet die dienaar van die tent af kom en die afkoopwaarde kom bepaal. Of hy dit oor- of onderwaardeer, is nie ter sake nie. Die bedrag wat hy vasgestel het, staan vas. As die persoon wat die huis aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde bysit by die bedrag wat bepaal is. Die huis sal dan weer aan hom behoort.” “Iemand kon beloof het om van sy erfgrond, ’n stuk land waarop geplant en geoes kan word, aan die Here af te staan. Die afkoopwaarde daarvan moet dan bepaal word volgens die saad wat gewoonlik daarop gesaai kan word. Vir elke 100 kilogram saad word 50 stukke bereken. Indien hy sy saailand tydens die hersteljaar vir die Here beloof het, bly die volle bedrag net so staan. Indien dit eers na die hersteljaar is dat iemand sy land vir die Here gee, moet die dienaar van die Here die bedrag minder maak volgens die aantal jare wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. As die persoon wat die grond aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde byvoeg by die waarde wat die grond op daardie stadium het. Die grond word dan weer sy eiendom. As hy nie die grond afkoop nie, of die Here se werker verkoop dit aan iemand anders, mag dit nie weer afgekoop word nie. In die hersteljaar sal die grond egter nie vrykom nie. Dit behoort heeltemal aan die Here soos die banoffers, wat uitsluitlik aan Hom toegewy is. Dit word deel van die Here se eiendom. [22-23] Indien iemand ’n saailand aan die Here afstaan wat hy aangekoop het en wat nie deel van sy erfgrond was nie, moet die dienaar by die tent die afkoopwaarde daarvan bepaal volgens die jare wat daar nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die persoon betaal daar en dan die bedrag wat bepaal is aan die personeel by die Here se tent oor. *** In die hersteljaar word die grond teruggegee aan die oorspronklike eienaar. Dit was sy erfgrond. Al hierdie berekenings moet volgens die bepalings van die dienaars by die Here se tent gedoen word.” “Die eerste kalf van ’n koei en die eerste lam van ’n bok of ’n skaap wat gebore word, behoort volgens die reëls alreeds aan die Here. ’n Mens kan nie nog verder een van hulle aan die Here beloof nie, want dit is alreeds Syne. As dit die eerste kleintjie is van ’n dier wat nie op die altaar geslag mag word nie, kan die persoon dit afkoop vir een vyfde meer as die afkoopwaarde. As hy dit nie wil afkoop nie, moet die dienaar by die Here se tent dit teen sy vasgestelde afkoopwaarde verkoop.” “Enigiets wat iemand heeltemal aan die Here afgestaan het en wat nie langer deur ’n mens gebruik mag word nie, of dit nou ’n mens of ’n dier of ’n lap erfgrond is, kan nooit weer afgekoop of verkoop word nie. Dit behoort net aan die Here en aan Hom alleen. Geen mens wat as ’n offer aan die Here beloof is, kan weer teruggekoop word nie. Daardie persoon moet doodgemaak word. “Een tiende van alles wat die land oplewer, van al die graan en van al die vrugte, behoort uitsluitlik aan die Here en aan Hom alleen. As iemand van die tiende wat hy moet afstaan, iets wil terugkoop, moet hy ’n vyfde by die waarde daarvan byvoeg. ’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word. Daar moet nie onderskeid gemaak word tussen goeie en slegte diere wanneer hulle uitgekeer word nie. ’n Dier kan ook nie sommer vir ’n swakker een omgeruil word nie. As iemand tog sal waag om dit te doen, moet hy die dier wat hy eerste uitgekeer het, sowel as die dier waarmee hy dit wou ruil, aan die Here afstaan.” Dit is dan al die voorskrifte wat die Here op Sinai deur Moses aan sy volk gegee het. In die middel van die lente in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het, het die Here met Moses in die tabernakel, die spesiale tent waar Hy hom ontmoet het, gepraat en vir hom gesê: [2-3] “Jy en Aäron moet ’n sensusopname van die hele volk volgens hulle familiegroepe en stamme hou. Skryf die name op van al die mans van twintig en ouer wat militêre diens kan doen. *** Kry een hoof uit elke stam om julle hiermee te help. Hier is die name van die mense wat julle moet help: uit die stam Ruben: Sedeür se seun Elisur; uit Simeon: Suri-Saddai se seun Selumiël; uit Juda: Amminadab se seun Nagson; uit Issaskar: Suar se seun Netanel; uit Sebulon: Gelon se seun Eliab; uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Ammihud se seun Elisama, en uit Manasse: Pedasur se seun Gamliël; uit die stam Benjamin: Gidoni se seun Abidan; uit Dan: Ammi-Saddai se seun Agiëser; uit Aser: Okran se seun Pagiël; uit Gad: Reüel se seun Eljasaf; uit Naftali: Enan se seun Agira.” Hierdie stamhoofde, wat almal leiers in hulle eie families is, is die mense wat toe deur die volksvergadering aangewys is. [17-18] Moses en Aäron het saam met hierdie leiers toe die volk op daardie dag bymekaar laat kom om hulle te laat registreer volgens hulle familiegroepe en stamme. Al die mans van twintig en ouer se name is een vir een opgeskryf, *** volgens die Here se opdrag aan Moses. Dit het in die Sinaiwoestyn gebeur. [20-46]  Die weerbare manne se getalle volgens hulle stamme was: van Israel se oudste seun Ruben — 46 500 van Simeon — 59 300 van Gad — 45 650 van Juda — 74 600 van Issaskar — 54 400 van Sebulon — 57 400 van Josef se seuns: Efraim — 40 500 Manasse — 32 200 van Benjamin — 35 400 van Dan — 62 700 van Aser — 41 500 van Naftali — 53 400 Daar was altesaam 603 550 weerbare manne wat twintig jaar en ouer was. Hulle getalle is bereken volgens hulle families. *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** [47-48] Hierdie getalle het nie die Leviete ingesluit nie, want die Here het vir Moses gesê: *** “Moenie die Leviete bytel wanneer jy die Israeliete tel om te sien hoeveel soldate jy het nie. Jy moet hulle gebruik om toesig te hou oor die tabernakel, die spesiale tent wat die bewys van my teenwoordigheid by julle is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die gereedskap en toebehore wat deel is van die tabernakel. Net hulle mag die tabernakel dra en met hierdie gereedskap werk. Daarom moet hulle hulle tente rondom die tabernakel opslaan waar julle ook al kamp. Wanneer die tabernakel verskuif moet word, is dit die Leviete se werk om dit op en af te slaan. Enigiemand anders wat dit naby die tent waag, moet onmiddellik doodgemaak word. Die res van die Israeliete moet hulle kamp volgens hulle verskillende leërafdelings opslaan. Elke afdeling het sy eie vlag. Die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel, wat sê dat Ek by julle is, opslaan. Hulle moet die tabernakel oppas. Dit dien as beskerming vir die res van die volk, sodat iemand nie per ongeluk daar inkom en Ek baie kwaad word vir die Israeliete nie.” Die Israeliete het toe alles presies volgens Moses se voorskrif gedoen. Die Here het vir Moses en Aäron die volgende instruksies gegee: “Wanneer die Israeliete kamp opslaan, moet julle aan elke groep ’n sekere gebied toeken waar hulle hulle tente moet opslaan. Hulle moet ook hulle eie vlag daar laat waai. Die tent waar Ek aanbid word, moet in die middel van die kamp wees met die ander tente so ’n ent weg reg rondom die tabernakel opgeslaan. “Die stam van Juda moet hulle kamp aan die oostekant, waar die son opkom, opslaan. Hulle moet by hulle vlag bly, en ingedeel in leërafdelings. Amminadab se seun Nagson is die leier van die stam. Juda se soldate is 74 600. Die stam van Issaskar moet langs Juda kamp opslaan. Suar se seun Netanel is die leier. Hulle het 54 400 soldate. Daarna volg die stam Sebulon met Gelon se seun Eliab as leier. Hierdie stam het 57 400 soldate. Die totaal van al die troepe in Juda se kamp is 186 400 soldate. Hierdie drie stamme moet altyd eerste trek as julle julle kamp verskuif. “Die stam van Ruben moet aan die suidekant kamp opslaan, by hulle vlag, en hulle moet ingedeel word in verskillende leërafdelings. Sedeür se seun Elisur is die leier van die stam. Ruben se getal soldate is 46 500. Die stam van Simeon moet langs Ruben kamp opslaan. Suri-Saddai se seun Selumiël is die leier van die stam. Daar is 59 300 soldate in die stam. Daarna volg die stam van Gad met Reüel se seun Eljasaf as hulle leier. Sy getal soldate is 45 650. Die totaal van die troepe onder leiding van Ruben is altesaam 151 450 soldate. Hierdie stamme moet altyd tweede trek. “Die Leviete met die tent van aanbidding moet altyd in die middel van die ander groepe bly wanneer hulle trek. Die stamme moet in dieselfde posisie bly waarin hulle ingedeel is en elke groep moet hulle eie vlag dra. “Die stam Efraim moet aan die westekant kamp opslaan, by hulle vlag en ingedeel volgens verskillende leërafdelings. Ammihud se seun Elisama is die leier van daardie stam. In sy stam is daar 40 500 soldate. Die stam van Manasse moet langs Efraim kamp opslaan, met Pedasur se seun Gamliël as sy leier. Die stam het 32 200 soldate. Daarna volg die stam van Benjamin met Gidoni se seun Abidan as leier. Die stam het 35 400 soldate. Die totaal van die troepe onder leiding van Efraim is altesaam 108 100 soldate. Hierdie stamme moet altyd derde trek. “Die stam van Dan moet aan die noordekant kamp opslaan by hulle vlag en volgens hulle leërafdelings. Ammi-Saddai se seun Agiëser is die leier van hierdie stam. Dan se getal soldate is 62 700. Die stam van Aser moet langs Dan kamp opslaan. Okran se seun Pagiël is die leier van die stam. Aser se getal soldate is 41 500. Daarna volg die stam van Naftali met Enan se seun Agira as leier. Die getal soldate binne dié groep is 53 400. Die totaal van die troepe onder leiding van Dan is altesaam 157 600 soldate. Hierdie stamme moet laaste trek.” Dit was dan die totaal van al die Israeliete, volgens hulle families. Al die geteldes in die kampe, ingedeel in verskillende leërafdelings, was 603 550 soldate. Soos die Here vir Moses beveel het, is die Leviete se getalle nie hierby ingereken nie. Die Israeliete het presies gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Hulle het elkeen by hulle eie vlag kamp opgeslaan en dit saamgedra as hulle weer weggetrek het. Elke stam was ook ingedeel volgens hulle familiegroepe. Toe die Here destyds met Moses op die berg Sinai gepraat het, het hy en Aäron reeds hulle eie families gehad. Aäron het vier seuns gehad: Nadab, hy was die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar. Hulle is eers met olie gesalf en toe as priesters in diens van die Here aangestel. Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat doodgaan omdat hulle sonder sy toestemming vuur na die altaar toe gebring het. Aangesien hulle nie kinders gehad het nie, was dit net Eleasar en Itamar wat saam met hulle pa as priesters opgetree het. Toe sê die Here vir Moses: “Laat die stam van Levi vir Aäron help. Saam met Aäron moet hulle al die dienste in die tabernakel, die spesiale tent van die Here, waarneem. Hulle moet al die toebehore in die tabernakel in stand hou. Die Leviete se verantwoordelikheid is om vir Aäron en sy seuns te help. Die werk van die priesters mag net deur Aäron en sy seuns gedoen word. Iemand anders wat dit sou waag om hiermee te help moet onmiddellik doodgemaak word.” Die Here het verder vir Moses gesê: [12-13] “Die Leviete behoort aan My. Toe Ek al die oudste kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke eersgebore kind in Israel, mense en diere, vir Myself opgeëis. Nou, in plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. Dit sê Ek; Ek, die Here!” *** [14-16] Die Here het weer met Moses gepraat in die Sinaiwoestyn en vir hom die opdrag gegee om al die Leviete te tel. Dit moes die mans van ’n maand en ouer van al die groepe en families insluit. Moses het dit toe gedoen. *** *** Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari. Die Gersongroep was Libni en Simi. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was Levi se nageslag wie se familiegroepe die name van hulle voorvaders gehad het. Gerson se nageslag het uit die familiegroepe van Libni en Simi bestaan. Daar was altesaam 7 500 mans in hierdie groep. [23-24] Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel kamp opgeslaan onder leiding van Lael se seun Eljasaf. *** Hulle werk was om die tabernakel in stand te hou: die tent met sy dekseile, die gordyn by die ingang van die tent, die gordyn by die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was en al die toue, met alles wat dié diens insluit. Die Kehatgroep het bestaan uit die familiegroepe van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Daar was altesaam 8 600 mans in hierdie groep. Hulle taak was om die heiligdom waar God gedien word, in stand te hou. Die Kehatgroep het suid van die tabernakel kamp opgeslaan. Hulle leier was Ussiël se seun Elisafan. Hierdie groep se taak was die instandhouding van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit. Aäron se seun Eleasar was die leier van die familiehoofde van Levi. Sy werk was om toesig te hou oor almal wat in die Here se heilige plek diens doen. Die Merarigroep is saamgestel uit die familiegroepe van Magli en Musi. Daar was altesaam 6 200 mans in hierdie groep. Die Merarigroep het noord van die tabernakel kamp opgeslaan. Hulle leier was Abigajil se seun Suriël. Die Merarigroep se taak was die versorging van die rame, dwarslatte, hoekpale en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit; ook van die hoekpale rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue. Die gebied oos van die tabernakel is vir Moses en Aäron en sy seuns opsy gesit. Hulle taak was om namens die volk in die tabernakel self diens te doen. Enigiemand anders wat dit selfs naby aan die Here se tent gewaag het, moes daar en dan doodgemaak word. Die totaal van al die Leviete van ’n maand en ouer was 22 000. Dit is volgens Moses en Aäron se sensus. Die Here het verder vir Moses gesê: “Tel al die oudste manlike kinders in Israel van ’n maand en ouer. Maak dan ’n lys van hulle name. Die Leviete moet die plaasvervangers wees vir die kinders in Israel wat eerste gebore is. Net so moet die Leviete se vee die plaasvervangers wees vir die eerstelinge van die volk se vee. So sê Ek; Ek, die Here!” [42-43] Moses het toe al die oudste kinders in Israel getel soos die Here beveel het. Die getal waarop hy uitgekom het, was 22 273. *** Toe sê die Here vir Moses: “Vat die Leviete in die plek van die eersgebore kinders van Israel en vat hulle vee in die plek van die eerstelinge van Israel se vee. Die Leviete is my eiendom. So sê Ek; Ek, die Here. Aangesien daar 273 meer eersgeborenes in Israel is as wat daar Leviete is, moet hulle losgekoop word uit my diens. Dit gaan vyf silwerstukke kos, want dit is die standaardgewig wat in die heiligdom gebruik word. Die loskoopprys is elf gram per silwerstuk vir elke persoon wat losgekoop word. Gee dan hierdie geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die ekstra eersgeborenes.” Moses het toe die geld ingesamel. Vyftien kilogram silwer is ingesamel. Soos die Here beveel het, het Moses dit vir Aäron en sy seuns gegee. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: [2-3] “Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud wat deel uitmaak van die Kehatgroep. Dit moet al die families van hierdie groep insluit, almal wat diens kan doen in die tent van aanbidding. *** Hulle moet werk met al die voorwerpe wat spesiaal vir my diens opsy gesit is in die tent van aanbidding. “Net voor die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns in die tabernakel ingaan en eers die voorste gordyn afhaal. Hulle moet dit dan oor die ark met die kliptafels daarin gooi. Bo-oor die gordyn moet hulle ’n seil van gebreide velle gooi. Dan moet hulle alles met ’n groot blou doek toemaak. Daarna moet hulle die pale waarmee die ark gedra word, op die regte plekke insteek. “Hulle moet ook ’n blou tafeldoek oor die tafel gooi waarop die offerbrood is wat aan die Here geoffer word. Saam met die offerbrood moet hulle ook die skottels, die bakke met die wierook, die offerbakke en die kanne met die wyn wat geoffer word, daarop neersit. “Dan moet hulle ’n bloedrooi doek oorgooi en alles met ’n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die pale insit waarmee dit gedra word. “Hulle moet die kandelaar met sy lampe, tange, bakkies en kanne met olyfolie in ’n blou doek toedraai. Daarna moet hulle hierdie bondel in ’n gebreide leerdoek toemaak en dit op die draagbaar neersit. Dan moet hulle ’n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit met ’n gebreide leerdoek toemaak, en die pale waarmee dit gedra word, insit. “Die res van die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, moet dan met ’n blou doek toegedraai word. Daarna moet dit met ’n seil van gebreide vel toegedraai en op die draagbaar neergesit word. Nadat hulle al die as van die altaar afgevee het, moet hulle ’n pers doek daaroor gooi. Dan moet hulle al die gereedskap wat vir die diens by die altaar gebruik word, daarop neersit: die vuurpanne, hake, grawe en bakke. Daarna moet hulle dit met ’n seil van gebreide vel toedraai en die pale waarmee dit gedra word, insit. “Wanneer dit tyd is om die kamp te verskuif, moet Aäron en sy seuns eers al die voorwerpe wat gebruik word om die Here te dien behoorlik toemaak. Eers dan kan die Kehatiete dit kom dra na die volgende kamp toe. Hulle mag nie aan hierdie voorwerpe raak nie, anders sal hulle dadelik doodgaan. Dit is die Kehatgroep se taak wanneer die tent waar die Here aanbid word, verskuif moet word. “Aäron se seun Eleasar is verantwoordelik vir die olie vir die kandelaar, die wierook, die graanoffer wat daagliks geoffer word en die olie waarmee alles gesalf word. Eintlik is hy verantwoordelik vir die hele tabernakel.” Verder het die Here vir Moses gesê: “Julle moet seker maak dat die Kehatgroep van die Leviete nie doodgemaak word omdat hulle aan die voorwerpe geraak het wat opsy gesit is vir my diens nie. Wanneer hulle kom om hierdie voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns mooi vir hulle verduidelik wat om te doen sodat hulle nie dalk aan daardie voorwerpe raak nie. Onthou, die Kehatiete mag nie eens naby die tabernakel kom terwyl die priesters die voorwerpe gereedmaak nie. Al sou hulle net vir ’n oomblik daarna kyk, sal hulle doodgaan.” Die Here het vir Moses gesê: [22-23] “Tel nou al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Gersongroep. Dit moet al die families insluit, almal wat diens kan doen in die tent waar Ek aanbid word. *** Hulle werk is om algemene take te verrig en om al die swaar voorwerpe te dra. Dit sluit in die gordyne van die tabernakel, asook die tabernakel self met die binneseil en buiteseil van gebreide vel. Hulle moet ook die gordyne by die ingang van die tent waar Ek aanbid word, dra, asook die gordyne by die ingang van die voorhof en dié wat rondom die tabernakel en die altaar gespan is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die voorwerpe wat vir hierdie doel gebruik word, soos toue en penne. Aäron en sy seuns moet seker maak dat die Gersoniete al hierdie pligte nakom. Dit is hulle werk om te besluit wat die groep moet doen. Aäron se seun Itamar moet kyk dat hulle hulle werk doen.” [29-30] “Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Merarigroep. Dit moet al hulle families insluit, almal wat kan werk in die tent waar Ek aanbid word. *** Hulle pligte is om die volgende voorwerpe te dra: die rame, die dwarslatte, die hoekpale asook die voetstukke van die tabernakel. Verder moet hulle ook die hoekpale van die voorhof met hulle voetstukke, en ook al die penne, toue en ander toebehore dra. Maak ’n lys waarin sekere voorwerpe aan spesifieke persone toegeken word. Die Merarigroep val onder die toesig van Aäron se seun Itamar.” [34-48] Soos die Here beveel het, het Moses, Aäron en die leiers van die volk die drie Levitiese families, Kehat, Gerson en Merari, getel. Hulle het dit gedoen volgens al die families. Hulle het toe al die mans tussen 30 en 50 jaar oud wat diens kon doen in die tent waar God gedien word, opgeskryf. Die getalle was soos volg: Kehat 2 750, Gerson 2 630 en Merari 3 200. Die groottotaal van al die mans tussen 30 en 50 was 8 580. *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** Soos die Here Moses beveel het, is hulle getel. Elke groep het ook ’n eie taak gekry om te doen. Die Here het vir Moses gesê: “Beveel die Israeliete om elkeen wat ’n ernstige velsiekte het, of ’n onnatuurlike liggaamlike uitskeiding, of wat in kontak was met ’n lyk en daarom vir ’n tydperk nie aan godsdienstige aktiwiteite mag deelneem nie, uit die kamp uit te stuur. Dit geld vir sowel mans as vroue. Stuur hulle uit die kamp uit sodat hulle nie die kamp waar Ek by julle is, onrein maak nie.” Die Israeliete het toe die Here se opdrag uitgevoer en al hierdie mense uit die kamp weggestuur. Die Here het toe vir Moses gesê: “Wanneer ’n man of ’n vrou enige sonde doen waarmee hulle ontrou aan die Here is, moet die skuldige persoon sy skuld bely. Verder moet die volle bedrag vir die skade wat die onskuldige gely het, plus ’n verdere twintig persent as skadevergoeding aan daardie persoon terugbetaal word. As die persoon wat skade gely het, reeds dood is en nie ander familie het aan wie die skuld betaal kan word nie, behoort die geld aan die Here. Hierdie bedrag moet saam met die ram, wat geoffer moet word as bewys dat die skuldige jammer is oor sy sondes, aan die priester gegee word. “Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef. Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.” Toe sê die Here vir Moses: [12-15] “As ’n man agterdogtig raak en dink sy vrou het ’n verhouding met ’n ander man, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou by iemand anders geslaap het sonder dat haar man daarvan weet of sonder dat iemand dit uitgevind het. Dit kan ook wees dat, al was sy ontrou, daar geen getuie was wat haar betrap het nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou van sulke slegte dinge verdink sonder dat sy iets verkeerds gedoen het. In al hierdie gevalle moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ook ’n offer bring van een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, want so ’n offer waar ’n man sy vrou nie vertrou nie, is ’n offer wat die waarheid aan die lig moet bring. *** *** *** “Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan. Die priester moet dan ’n bak vat, dit volmaak met water wat vir sy diens opsy gesit is en dit met stof van die tabernakel se vloer meng. Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring. Dan moet hy die vrou vra om plegtig te beloof dat sy die waarheid praat. Hy moet dan vir haar sê: As ’n ander man nie by jou geslaap het nie en jy wat ’n getroude vrou is, nie ontrou aan jou man was nie, mag jou onskuld dan sigbaar word deur hierdie bitter water wat ’n groot straf oor jou kan bring as jy jok. Maar as jy die spoor byster geraak het en met ’n ander man seks gehad het, [21-22] mag die Here dan maak dat jou eie mense jou sal haat en verwerp. Mag jy dan nooit weer kinders hê nie sodat almal kan sien dat die Here se straf op jou rus. As jy skuldig is, mag hierdie water jou vir altyd onvrugbaar maak wanneer jy dit drink. “Hierop moet die vrou die priester dan antwoord: Dit is goed so. Laat dit alles presies net so gebeur.” *** “Die priester moet hierdie vloeke op ’n stukkie leer neerskryf en dit in die bak met die bitter water afwas. Dan moet hy die vrou van die bitter water laat drink sodat dit kan uitwys of sy skuldig is of nie. Daarna moet die priester die offer by haar vat, dit aan die Here opdra en dit by die altaar neersit. Dan moet hy ’n hand vol van die offer, wat eintlik ’n simbool vir die hele offer is, vat en dit op die altaar verbrand. Daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink. As sy ontrou was aan haar man, sal die water haar baie siek laat word. Haar maag sal opswel, en sy sal nie weer kinders kan hê nie. Haar mense sal haar verag en verstoot. Maar as sy nie ontrou was aan haar man nie, sal haar onskuld bewys word. Dan sal sy weer babas verwag. “Hierdie prosedure moet gevolg word wanneer ’n man sy vrou nie vertrou nie. As ’n vrou ontrou was aan haar man en by iemand anders geslaap het, of as ’n man sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar bring sodat sy voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here kan staan en die priester hierdie ritueel kan uitvoer. As die vrou skuldig is, sal sy die gevolge van haar daad moet dra. Die man is in sulke gevalle onskuldig.” Die Here het vir Moses gesê om die volgende opdrag aan die volk oor te dra: “Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, die nasireërsbelofte aan die Here maak waarin hulle hulle verbind om Hom voltyds te dien vir ’n sekere tyd, moet so ’n persoon dadelik ophou om wyn of bier te drink. Hulle mag ook nie asyn gebruik wat van wyn gemaak is of enige ander gegiste drank of selfs vars druiwesap nie. Hulle mag ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. Vir so lank as wat die persoon aan die Here se diens afgesonder is, mag hy of sy niks eet wat van ’n wingerd af kom nie, nie eers die pitte of die doppe van die druiwe nie. “Nasireërs mag ook nooit hulle hare afsny nie. Die mans mag ook nie hulle baard afskeer vir die tydperk dat hulle voltyds in die Here se diens staan nie. Hulle moet hulle hare laat groei totdat hierdie tydperk van afsondering verby is. Hulle mag ook nie naby ’n dooie kom nie, selfs al sou een van hulle ouers of broers of susters doodgaan. Aangesien hulle lang hare die bewys is van hulle voltydse diens aan die Here, mag hulle nie naby ’n lyk kom of daaraan raak en so hulleself onrein maak nie. Hierdie reëls geld vir die hele tyd dat hulle as nasireërs in die Here se diens is. “Indien ’n nasireër toevallig naby iemand kom wat onverwags doodgaan, moet hy eers sewe dae wag en dan al sy hare en sy baard afskeer. Dan sal die nasireër weer in die Here se teenwoordigheid kan kom. Die volgende dag moet hy twee tortelduiwe of twee mak duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent waar die Here aanbid word. Die priester moet dan die een duif gebruik om vir sy sonde ’n offer aan God te bring en die ander een vir ’n brandoffer. So vra die nasireër om vergifnis voor God vir die fout wat hy onbewustelik gemaak het deur in die teenwoordigheid van ’n dooie te wees. Op dieselfde dag moet hy homself aan die Here se diens toewy deur sy hare en baard te laat groei. Hy moet ook weer voor die Here beloof dat hy Hom voltyds sal dien vir die hele tyd wat hy belowe het om dit te doen. Die dae wat hy onrein was, tel nie. As deel van sy belofte moet hy ook ’n jaaroud lam as ’n offer vir die Here bring om sy skuld te bely. “As die tyd van die nasireërsbelofte om is, moet die volgende voorskrifte nagekom word: Die nasireër moet na die ingang van die tent gaan waar die Here aanbid word. Hy moet dan drie diere sonder enige liggaamsgebrek aan die Here offer: as brandoffer ’n jaaroud skaaprammetjie, ’n jaaroud skaapooitjie as sondeoffer en ook nog ’n skaap of bokram as ’n eteoffer. Verder moet hy ook ’n mandjie met brood saamvat wat nie met suurdeeg gebak is nie; koekies van fynmeel wat sonder suurdeeg gebak is en met olyfolie aangemaak is, asook platkoek sonder suurdeeg wat met olie gesmeer is. Die graanoffer en drankoffer wat deel van hierdie offer uitmaak, moet ook geoffer word. Die priester moet al hierdie offers aan die Here offer, eers die sondeoffer en die brandoffer, daarna die ram as eteoffer saam met die mandjie met al die brood wat sonder suurdeeg gebak is. Die voorgeskrewe graan- en drankoffers moet ook gebring word. Die nasireër moet sy hare by die ingang van die tent waar die Here aanbid word, afskeer as teken van sy toewyding aan die Here. Hierdie hare moet dan in die vuur waarmee die maaltydoffer gebring word, verbrand word. “Daarna moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit saam met die suurdeeglose koekie en platkoekie vir die nasireër gee om in sy hande vas te hou. Die priester moet dan hierdie kos heen en weer voor die Here beweeg as ’n teken dat dit aan Hom gegee word. Hierdie gawes wat so voor die Here gebring is, behoort dan aan die priester, saam met die borsstuk en die boud van die dier, wat ook in die Here se teenwoordigheid heen en weer beweeg is. Hierna is die nasireër vry om weer wyn te drink. Hierdie voorskrifte moet gevolg word as die nasireër se tyd van spesiale diens aan die Here verby is. Indien ’n nasireër enigiets anders aan die Here belowe het behalwe alles wat voorgeskryf is, moet hy hierdie beloftes nakom.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns om die volgende woorde te gebruik wanneer hulle die mense van Israel seën as bewys van God se goedheid in hulle lewe: Die Here sal julle seën en julle oppas. Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees. Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee. “Dit is hoe Aäron en sy seuns my Naam moet gebruik wanneer hulle die Israeliete seën. As hulle dit so doen, sal Ek sorg dat dit met hulle goed gaan.” Toe Moses die tabernakel klaar opgeslaan het en die tent met al sy toebehore, asook die altaar waar al die offers aan God gebring word, in gebruik geneem het, het die leiers van Israel, dit is die stamleiers wat die sensus opgeneem het, hulle offers vir die Here gebring. Hulle het ses waens met seile bo-oor en twaalf osse na die tabernakel toe gebring, een wa vir elke twee leiers en ’n os vir elke leier. Toe sê die Here vir Moses: “Gebruik hierdie offers om te help met alles wat moet gebeur by die tent waar Ek aanbid word. Gee die waens en osse vir die Leviete sodat hulle dit kan gebruik om hulle te help met hulle werk.” Moses het toe die waens en die osse vir die Leviete gegee. Hy het vir die Gersongroep twee waens en vier osse gegee en vir die Merarigroep vier waens en agt osse om vir hulle werk te gebruik. Hulle het hulle werk onder die toesig van Itamar, Aäron se seun, gedoen. Moses het nie vir die Kehatgroep enige waens en osse gegee nie omdat hulle volgens die Here se opdrag die heilige voorwerpe op hulle skouers moes dra. Die leiers het ook ander offers gebring toe die offeraltaar in gebruik geneem is. Die Here het vir Moses beveel om hulle die offers op verskillende dae na die altaar toe te laat bring. [12-83] Op die eerste dag het Amminadab se seun Nagson, uit die stam Juda, sy offer gebring; op die tweede dag Suar, die leier van Issaskar se seun Netanel; op die derde dag Gelon, die leier van Sebulon se seun Eliab; op die vierde dag Sedeür, die leier van Ruben se seun Elisur; op die vyfde dag Suri-Saddai, die leier van Simeon se seun Selumiël; op die sesde dag Reüel, die leier van Gad se seun Eljasaf; op die sewende dag Ammihud, die leier van Efraim se seun Elisama; op die agste dag Pedasur, die leier van Manasse se seun Gamliël; op die negende dag Gidoni, die leier van Benjamin se seun Abidan; op die tiende dag Ammi-Saddai, die leier van Dan se seun Agiëser; op die elfde dag Okran, die leier van Aser se seun Pagiël, en op die twaalfde dag Enan, die leier van Naftali se seun Agira. Elke leier het presies dieselfde offers gebring: een silwerskottel wat een en ’n half kilogram geweeg het, een silwerbak van 800 gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom waar God gedien word en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue wierookpannetjie van 115 gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as eteoffers. *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** *** Die offers wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerbakke en twaalf goue wierookpannetjies. Elke skottel het een en ’n half kilogram geweeg en elke bak 800 gram. Die silwergereedskap het altesaam 28 kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen 115 gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die gewig van al die goue wierookpannetjies was omtrent een en ’n half kilogram. Wat die diere betref, was daar twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer, saam met hulle graanoffers, en twaalf bokramme as sondeoffer. Die totaal van al die diere wat vir die maaltydoffers gebring is tydens die inwyding van die altaar was: 24 bulle, 60 ramme, 60 bokramme en 60 jaaroud lammers. Elke keer as Moses in die tent ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here gehoor wat met hom praat. Die stem het van die deksel gekom wat bo-op die ark was, daar tussen die figure van die twee gerubs uit. Op hierdie manier het die Here met Moses gepraat. Die Here sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron hy moet die kandelaar so opstel dat die sewe lampe se lig almal vorentoe skyn.” Aäron het gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Hy het die kandelaar so neergesit dat al die lampe se lig vorentoe geskyn het. Die hele kandelaar was van verwerkte goud, van die voetstuk af tot by die boonste gedeelte, wat versier was in die vorm van blombloeisels. Aäron het die kandelaar presies gemaak volgens die skaalmodel wat die Here aan Moses gewys het. Die Here het weer met Moses gepraat en vir hom gesê: “Sit die Leviete opsy, weg van die res van die Israeliete af. Maak hulle rein om My te kan dien. Doen dit op die volgende manier: gooi water oor hulle as ’n teken dat hulle sonde van hulle afgewas word. Verder moet hulle ’n skeermes vat en al hulle liggaamshare afskeer en hulle klere skoon was. Dan kan hulle skoon voor My staan, gereed om vir My te werk. Daarna moet hulle ’n jong bul as offer slag saam met die graanoffer van fynmeel wat met olie gemeng is wat daarby hoort. Slag en offer ook ’n tweede jong bul vir hulle as ’n offer vir hulle sonde. Roep dan al die Israeliete bymekaar en laat die Leviete voor die ingang van die tent staan waar Ek aanbid word. Wanneer jy die Leviete so voor My, die Here, gebring het, moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê. Aäron moet dan die Leviete aan My, die Here, opdra, net soos die offer wat heen en weer voor My beweeg word om dit aan My op te dra. Dan sal die Leviete gereed wees om hulle werk in my Naam te doen. “Hierna moet die Leviete hulle hande op die twee bulle se koppe sit. Die een bul moet as ’n sondeoffer en die ander bul as ’n brandoffer aan My, die Here, geoffer word om die Leviete se sonde weg te vat. Die Leviete moet dan as ’n spesiale offer, soos dié wat heen en weer voor My beweeg word, aan My opgedra word. Daarna moet hulle in diens van Aäron en sy seuns staan. Op hierdie manier moet die Leviete van die res van die Israeliete afgesonder word sodat hulle net aan My kan behoort. Hierna mag die Leviete hulle werk doen in en om die tent waar Ek aanbid word. [16-18] “In die plek van al die eersgebore seuns van die Israeliete het Ek nou die Leviete op ’n spesiale manier vir Myself gevat. Toe Ek al die eersgebore kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke oudste kind in Israel, mense en diere ingesluit, as my eiendom opgeëis. In plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. *** *** Ek stel die Leviete tot die beskikking van Aäron en sy seuns sodat hulle hulle werkslas kan verlig. Hulle is ’n geskenk van die Israeliete aan Aäron en sy seuns om in hulle plek by die tent van aanbidding te werk. Op dié manier sal dit die Israeliete beskerm van enige straf wat hulle kan tref as hulle self te na aan die tent kom waar Ek aanbid word.” Moses en Aäron en al die Israeliete het presies alles met die Leviete gedoen wat die Here gesê het. Die Leviete het hulleself en hulle klere skoongewas en Aäron het hulle aan die Here opgedra soos ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word. Hy het ook namens hulle by die Here verskoning gevra vir hulle sondes en hulle so gereed gekry vir hulle diens in die tabernakel. Die Leviete het van toe af onder leiding van Aäron en sy seuns hulle werk gedoen in die tent waar die Here aanbid word. So het hulle al die Here se opdragte aangaande die Leviete gehoorsaam. Die Here het ook vir Moses gesê: “Die Leviete moet die volgende reël streng nakom: hulle mag eers op die ouderdom van 25 jaar begin werk in die tent waar Ek aanbid word, en hulle moet op die ouderdom van 50 aftree. Na hulle aftrede mag hulle die Leviete met die dienswerk by die tent help, maar hulle mag dan nie meer self enige dienste verrig nie. Dit is hoe jy die Leviete se dienstyd moet bepaal.” In die lente van die tweede jaar na die uittog uit Egipte, terwyl hulle nog in die Sinaiwoestyn was, het die Here met Moses gepraat. Hy het vir hom gesê: “Die Israeliete moet die paasfees op die regte tyd en op die regte manier vier; teen skemer op die dag wat Ek bepaal het aan die begin van die lente. Doen dit presies soos Ek voorskryf.” Moses het toe die Israeliete beveel om die paasfees te vier. Hulle het dit aan die begin van die lente daar in die Sinaiwoestyn op die vasgestelde dag gedoen. Daar was egter ’n klomp mense wat nie aan die paasfees kon deelneem nie, aangesien hulle iemand moes begrawe en aan ’n lyk geraak het. Hulle kon daarom nie aan godsdienstige aktiwiteite deelneem nie. Hulle het toe met Moses en Aäron gaan praat en vir hulle gesê: “Ons weet ons is onrein om aan godsdienstige aktiwiteite deel te neem, want ons moes aan ’n dooie vat. Maar hoekom keer dit ons om saam met die res van die Israeliete hierdie offer aan die Here te bring?” “Wag hier,” het Moses gesê, “ek moet eers hoor wat die Here daarvan dink.” Die Here se antwoord hierop was: “Sê vir die Israeliete: As een van julle of een van julle kinders onrein geword het omdat julle met ’n lyk in aanraking gekom het, of as iemand dalk op daardie stadium op reis is en nie die seremonie kan bywoon nie, mag hulle nog steeds die Here se paasfees vier. Al wat moet gebeur, is dat hulle dit presies moet doen volgens al die voorskrifte, maar dan net ’n maand later. Hulle moet die paaslam eet saam met die brood wat sonder suurdeeg gebak is en die sous wat van bitter kruie gemaak is. Hulle mag niks van die vleis vir die volgende môre oorhou nie en hulle mag ook nie ’n been van die paaslam breek nie. Hulle moet die voorskrifte vir die paasfees streng gehoorsaam. Maar as iemand nie op reis is nie of nie godsdienstig onrein is nie en nogtans weier om die paasfees op die regte tyd te vier, moet so ’n persoon uit die gemeenskap uitgeskop word. Dan moet hy maar die gevolge van sy daad dra. As daar iemand by julle bly wat nie ’n Israeliet is nie, maar wel die paasfees vir die Here wil vier, mag hy dit doen op voorwaarde dat die persoon al die voorskrifte nakom vir die viering van die paasfees, want dieselfde reëls geld vir almal.” Die dag toe die tabernakel, die tent waar die Here aanbid word, vir die eerste keer opgeslaan is, het daar ’n wolk gekom wat die hele tent soos ’n seil toegemaak het. Die wolk het elke dag en elke nag daar bly hang. Die enigste verskil was net dat die wolk in die aand soos ’n vuur gelyk het. Bedags was daar ’n wolk oor die tent en saans ’n vuurwolk. Elke keer as die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgeslaan en agter die wolk aangetrek tot waar dit gaan staan het. Dan het hulle daar kamp opgeslaan. Dit was die Here se manier om hulle op ’n plek te laat bly of hulle te laat trek. Hulle het op ’n plek gebly totdat die wolk van die tent af opgelig het. Vir so lank as wat die wolk oor die tabernakel gebly het, het die volk daar bly kamp, al was dit ook hoe lank, want hulle het geweet dit is wat die Here wou hê. Soms het dit gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae op die tabernakel gebly het. Dan het hulle net vir dié rukkie daar gebly. Maar wat ook al die geval was, hulle het altyd op die Here se bevel getrek of gebly. Ander kere weer het die wolk net een nag op ’n plek gebly en dan het hulle die volgende môre weer verder getrek. Dit het nie saak gemaak of dit net een dag was nie; as die wolk opgelig het, het hulle getrek. Of dit nou twee dae, ’n maand of ’n jaar was wat die wolk bokant die tabernakel gebly het, het nie saak gemaak nie. Solank die wolk daar gebly het, het die Israeliete op die plek bly kamp. Maar die oomblik dat dit opgelig het, het hulle dadelik kamp opgeslaan en agterna getrek. Hulle het net op die Here se bevel getrek en elke opdrag uitgevoer wat die Here vir Moses gegee het. Die Here het vir Moses gesê: “Maak twee trompette van suiwer silwer en gebruik dit om die volk bymekaar te kry vir ’n vergadering of as teken dat hulle die kamp moet opbreek. As albei die trompette gelyk blaas, moet die hele volk bymekaarkom vir ’n vergadering voor die ingang van die tent waar Ek aanbid word. As net een van die trompette geblaas word, is dit ’n teken vir die leiers van die stamme om na jou toe te kom vir ’n vergadering. As julle die trompet die eerste keer kort en hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant gekamp het, oppak en vertrek. Wanneer die trompet die tweede keer kort en hard geblaas word, is dit tyd vir die stamme aan die suidekant om op te pak en te trek. Elke groep moet oppak en trek wanneer hulle die teken hoor wat spesiaal vir hulle bedoel is. Om die volk vir ’n vergadering op te roep moet die trompette op ’n ander manier en toonhoogte geblaas word. Net die priesters, Aäron se seuns en hulle kinders, mag die trompette blaas. Dit is ’n reël wat vir julle ganse nageslag moet geld. Wanneer julle in julle land aankom en julle julle teen julle vyande moet verdedig, moet julle hard op hierdie trompette blaas om die volk vir oorlog op te roep. Dan sal Ek, die Here julle God, onthou dat julle my volk is en Ek sal julle van julle vyande red. Julle moet ook die trompette blaas as julle bly is en iets het om te vier. Blaas hulle by julle jaarlikse feeste en aan die begin van elke nuwe maand. Blaas hulle as julle bly is oor julle brandoffers en julle eteoffers. Die trompette sal My daaraan herinner dat Ek in ’n ooreenkoms met julle vir julle gesê het: “Ek is die Here, Ek is julle God.” Op ’n dag in die middel van die lente, twee jaar nadat die Israeliete uit Egipte uit weg is, het die wolk van die tabernakel af opgelig. Die Israeliete het toe getrek van die Sinaiwoestyn af tot in die Paranwoestyn, waar die wolk weer tot stilstand gekom het. Die Israeliete het getrek op die manier wat die Here vir Moses beveel het. Hulle het dit so gedoen: heel voor het die afdelings onder leiding van die stam van Juda onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Amminadab se seun Nagson. Suar se seun Netanel was in bevel van die afdeling van die stam van Issaskar, en Gelon se seun Eliab was die leier van die afdeling van die stam van Sebulon. Daarna is die tabernakel afgebreek. Toe kon die groep van Gerson en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek. Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Ruben. Hulle het onder hulle eie vlag getrek. Hulle leier was Sedeür se seun Elisur. Suri-Saddai se seun Selumiël was in bevel van die afdeling van die stam van Simeon, en Reüel se seun Eljasaf was die leier van die afdeling van die stam van Gad. Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die voorwerpe gedra wat aan die Here se diens gewy is. Teen die tyd dat hulle by die volgende kampplek aangekom het, was die tabernakel gewoonlik reeds opgeslaan. Net ná hulle het die afdelings onder leiding van die stam van Efraim onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Ammihud se seun Elisama. Pedasur se seun Gamliël was in bevel van die afdeling van die stam van Manasse, en Gidoni se seun Abidan oor die afdeling van die stam van Benjamin. Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Dan, ook onder hulle eie vlag. Hulle het die agterhoede van al die afdelings gevorm. Ammi-Saddai se seun Agiëser was die leier van hierdie afdeling. Okran se seun Pagiël was die leier van die afdeling van die stam van Aser, en Enan se seun Agira die leier van die afdeling van die stam van Naftali. So het die Israeliete altyd getrek, afdeling vir afdeling. Toe hulle wegtrek, het Moses vir sy swaer, Gobab, wat Reüel die Midianiet se seun was, gesê: “Ons is nou op pad na die land toe wat die Here vir ons beloof het. Kom saam met ons, dan deel jy in ons voorspoed, want die Here het wonderlike dinge vir ons belowe.” Maar Gobab het geantwoord: “Nee dankie, ek dink ek gaan eerder terug na my eie land en familie toe.” Maar Moses het nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie: “Moet ons nie nou alleen los nie. Jy ken die beste kampplekke in die woestyn, jy kan ons gids wees. As jy saamkom, kan jy ook deel hê aan al die wonderlike dinge wat die Here vir ons gaan gee.” So is die volk van die berg Sinai, die berg van die Here, af weg. Hulle het drie dae lank getrek met die verbondsark van die Here op die voorpunt van die volk om vir hulle te wys waar om te stop en te rus. Elke dag wat hulle op pad was, het die wolk van die Here bokant hulle gebly. Elke keer as die priesters met die verbondsark begin trek het, het Moses gesê: “Staan op, Here, jaag u vyande weg voor U! Laat almal wat U haat, voor U padgee!” En elke keer as hulle by die kamp aangekom en die ark neergesit het, het Moses gesê: “Kom asseblief nou terug na die reuseskares van Israel toe, Here!” Dit was nie lank nie of die volk het by die Here oor alles begin kla. Toe Hy dit hoor, was Hy baie kwaad. In sy woede het Hy ’n deel van die kamp aan die brand laat slaan en dit tot op die grond laat afbrand. Die volk het by Moses hulp gaan soek en toe hy tot die Here bid, het die Here die vuur laat doodgaan. Hulle het die plek Tabera, plek van die brand, genoem, want daar het die Here ’n reusevuur onder hulle laat brand. Sommige van die mense van ander volke wat saam met die Israeliete getrek het, het so lus gekry vir vleis dat hulle net wou terugdraai Egipte toe. Dit het gemaak dat baie van die Israeliete self ook begin kla het. “As ons tog maar net ’n stukkie vleis gehad het om te eet,” het hulle gekerm. “Om nie eers te praat van die vis wat ons in Egipte verniet gekry het nie! En wat van die komkommers en waatlemoene, ja, selfs preie, uie en knoffel, net soveel as wat ons wou hê. Hier krepeer ons van die ellende en al wat ons het om te eet is manna, dagin en daguit!” Die manna was so groot soos koljandersaad met ’n geel kleur. [8-9] Die manna het elke nag saam met dou om die kamp geval. Die volgende oggend het die mense dit oral gaan optel en dit op uitgeholde klippe met ’n ander klip fyngemaal, of in ’n bakkie met ’n ronde voorwerp fyngedruk. Hierdie fyngemaakte manna kon dan gekook word, of soos koek in panne gebak word. Die mannakoeke het net soos oliekoeke gesmaak. *** Moses het gehoor hoe die mense in groepies by hulle tente rondstaan en onder mekaar kla. Die Here was woedend hieroor. Moses self was ook baie ontsteld en het vir die Here gesê: “Waarom behandel U my so sleg? Wat het ek gedoen om so ’n las soos hierdie volk te verdien? Is hulle miskien my kinders wat ek in die wêreld gebring het? Moet ek nou soos ’n babaoppasser met hulle in my arms rondloop tot in die Beloofde Land? Hulle loop die hele dag lank en kerm oor vleis. Waar moet ek vir al hierdie mense vleis vandaan kry? Ek sien regtig nie kans om vir hierdie hele volk verantwoordelikheid te neem nie. Dit is net te veel gevra van een mens. As dit is hoe U my gaan behandel, doen my eerder ’n guns en laat my doodgaan. Ek kan nie so aangaan nie.” Toe sê die Here vir Moses: “Soek 70 mense onder die leiers van Israel uit. Maak seker dat die mense hulle gesag sal aanvaar. Bring hulle dan saam met jou na die tent toe waar Ek aanbid word. Ek sal daar met julle kom praat en van die bekwaamheid wat Ek jou gegee het, op hulle skouers sit sodat hulle saam met jou verantwoordelikheid kan neem vir die volk. Dan hoef jy dit nie meer alleen te doen nie. Sê vir die volk: Was julle skoon, want môre sal julle vleis hê om te eet. Die Here het julle gekerm oor die vleis gehoor en dat julle sê Egipte was so verskriklik goed. Nou gaan die Here vir julle vleis gee om te eet, en julle sal moet eet! Moenie dink dit sal net vir ’n dag of twee of dalk vyf of tien, ja, selfs net twintig dae wees nie. Nee, julle sal ’n hele maand lank vleis eet totdat julle naar word daarvan en julle later nie meer ’n stukkie vleis in die oog sal kan kyk nie. Dit het julle nou daarvan met al julle gekla en verwyte dat julle nooit uit Egipte uit moes getrek het nie, toe julle die Here verwerp het.” Moses sê toe vir die Here: “Die manne alleen is omtrent 600 000 mense en U belowe om vir almal genoeg vleis te gee vir ’n hele maand! Selfs al slag ons al ons beeste en al ons skape, sal dit nooit genoeg wees nie. Ons kan al die visse in die see vang en dit sal nog steeds nie genoeg wees nie.” Toe vra die Here vir Moses: “Dink jy Ek het nie die mag om dit te doen nie? Jy sal nou met jou eie oë sien of my woorde waar word of nie.” Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!” “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!” Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het. Mirjam en Aäron het Moses gekritiseer omdat hy met ’n vrou uit Kus getrou het. [2-4] “Het die Here dan net deur Moses gepraat en nie deur ons ook nie?” wou hulle by hom weet. Die Here het gehoor wat hulle sê, want Moses was ’n baie nederige mens, die nederigste op aarde. Die drie van hulle is deur die Here aangesê om dadelik na die tent toe te gaan waar Hy aanbid word. Hulle is toe soontoe. *** *** Die Here het toe in ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Toe roep Hy vir Aäron en Mirjam nader en sê vir hulle: “Luister nou mooi na wat Ek vir julle sê. As Moses net ’n gewone profeet was, sou Ek met hom gepraat het soos met die ander profete, deur visioene en drome. Maar dit is nie hoe Ek met my dienaar Moses werk nie. Hy is my spesiale vertroueling. Met hom praat Ek direk en persoonlik, nie in allerhande raaisels nie. Hy sien selfs my silhoeët. Hoe kan julle dan waag om hom te kritiseer?” Die Here was baie kwaad vir hulle. Toe Hy daar weggaan en die wolk weer van die tent af oplig, was Mirjam se hele vel met ’n lelike uitslag oortrek. Haar hele vel was spierwit. Toe Aäron na Mirjam kyk en sien hoe sy lyk, het hy vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie ons dwaasheid wat ons in ’n oomblik van swakheid kwytgeraak het, teen ons hou nie. Moet Mirjam asseblief nie so siek laat bly nie. Dit is omtrent net so erg soos ’n kind wat doodgebore word, waarvan die liggaam al halfpad ontbind het.” Moses het toe gebid en gevra: “God, maak haar asseblief weer gesond!” Hierop het die Here geantwoord: “As sy ’n kind was en haar pa het opsetlik voor ander mense in haar gesig gespoeg om haar te verneder, sou sy nie die reg gehad het om voor oor sewe dae weer in die openbaar te verskyn nie. So, laat haar nou sewe dae lank buite die kamp bly sonder dat iemand naby haar kom. Na die sewe dae mag sy weer terugkom.” Mirjam is toe vir sewe dae uit die kamp verban en die volk het eers weer verder getrek nadat sy teruggekom het. Hulle het kamp opgebreek en van Gaserot af verder getrek tot in die Paranwoestyn, waar hulle weer kamp opgeslaan het. [1-2] Die Here sê toe vir Moses: “Kies nou ’n leier uit elkeen van die twaalf stamme en stuur die twaalf om die land Kanaän ongemerk te gaan deurkyk, want dit is die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee om in te bly.” *** Moses het toe die volgende leiers daar uit die Paranwoestyn Kanaän toe gestuur: Sammua, die seun van Sakkur uit die stam van Ruben Safat, die seun van Gori uit die stam van Simeon Kaleb, die seun van Jefunne uit die stam van Juda Jigal, die seun van Josef uit die stam van Issaskar Hosea, die seun van Nun uit die stam van Efraim Salti, die seun van Rafu uit die stam van Benjamin Gaddiël, die seun van Sodi uit die stam van Sebulon Gaddi, die seun van Susi uit die stam van Manasse, ’n Josefstam Ammiël, die seun van Gemalli uit die stam van Dan Setur, die seun van Migael uit die stam van Aser Nagbi, die seun van Wofsi uit die stam van Naftali Geüel, die seun van Maki uit die stam van Gad Dit is die manne wat Moses gestuur het om die land te gaan deurkyk. Moses het Nun se seun Hosea se naam na Josua verander. Moses het vir hulle gesê: “Gaan noord hiervandaan, deur die Negevwoestyn en dan al met die berge van Kanaän langs. Vind uit watter soort gebied dit is en hoeveel mense daar bly. Kyk of hulle hulleself sal kan verdedig as ons hulle sou aanval. Vind ook uit of dit goeie grondgebied is of nie. Kyk ook hoeveel van hulle stede versterkte mure het. Verder moet julle kyk of die gebied vrugbaar is en of dit bome het. Maak seker dat julle ook van die vrugte van die land vir ons saambring.” Dit was juis tyd vir die vroeë druiwe om ryp te word toe Moses hulle die land in gestuur het. Hulle is toe daar weg en het die hele land deurgegaan van die Sinaiwoestyn in die suide af tot by Regob in die noorde, naby Hamat. Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly. Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat. Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het. Na 40 dae in Kanaän het hulle besluit om terug te gaan kamp toe. Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel. Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop. Aan die suidekant, in die Negev, bly die Amalekiete, in die middel in die bergagtige gebiede bly die Hetiete, Jebusiete en Amoriete, terwyl die Kanaäniete aan die westekant teen die Middellandse See en aan die oostekant teen die Jordaanrivier bly.” Kaleb het toe die mense wat hieroor begin kla het, stilgemaak en hulle probeer motiveer en gesê: “Kom ons val hulle dadelik aan, want ons kan hulle beslis oorrompel.” Maar die ander leiers wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Ons kan nie teen hulle gaan oorlog maak nie, hulle is baie sterker as ons!” Hulle het ook allerhande bangmaakstories oor die land en sy mense onder die volk begin versprei. “Die land wat ons verken het, sluk sy inwoners in,” het hulle gesê, “om nie eers te praat van die mense wat daarin bly nie: hulle is almal reusagtig groot. Om die waarheid te sê, ons het ’n paar reuse daar gesien, almal afstammelinge van Enak. Ons het so klein soos sprinkane teen hulle gevoel en ons dink hulle het ons seker vir sprinkane aangesien.” Die klomp Israeliete het toe verskriklik begin huil, hulle het sommer dwarsdeur die nag aangehou. Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom en gesê: “As ons maar eerder in Egipte of in die woestyn doodgegaan het, dan was dit baie beter! Hoekom het die Here ons na die land toe gebring as ons in elk geval net doodgemaak gaan word en ons vroue en kinders as gevangenes weggevat gaan word? Miskien is dit vir ons beter om terug te gaan Egipte toe!” Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.” Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan. Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!” Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien. Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het? Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!” Maar Moses het by die Here gepleit: “Wat sal die Egiptenaars dink as hulle dit moet hoor? Hulle weet mos hoe magtig U is en hoe U hierdie volk uit hulle hande bevry het. Hulle sal dit dadelik vir die mense van hierdie land vertel. U weet tog dat al die inwoners van hierdie land maar alte goed weet dat U saam met hierdie volk trek. Hulle het gehoor dat U onder u volk woon, en bedags saam met hulle trek in die wolk wat skaduwee gee en snags daar is met die vuurwolk om lig te gee. As U hierdie volk nou totaal uitroei, sal al die nasies wat reeds van u wonderlike dade gehoor het, bymekaarkom en sê: ‘Die Here was nie sterk genoeg om hierdie volk in die land in te vat wat Hy hulle so plegtig belowe het nie, daarom het Hy hulle toe maar in die woestyn laat doodgaan.’ “Here, wys nou vir ons dat U regtig alles kan doen wat U gesê het. U het mos gesê: ‘Ek is die Here en Ek word nie gou kwaad nie. Ek hou my woord as Ek met julle ’n ooreenkoms gemaak het. Ek vergewe mense hulle sondes en hulle opstandigheid teen My, maar nie sonder dat hulle self die gevolge van hulle dade gedra het nie. Selfs hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal ly onder die gevolge van hulle verkeerde dade.’ Vergewe asseblief hierdie volk se sonde omdat U so baie vir hulle omgee. Vergewe hulle soos U hulle van Egipte af tot hier toe vergewe het!” Toe sê die Here: “Ek vergewe hulle, soos jy My gevra het om te doen. Maar so seker as wat Ek leef en Ek die hele aarde met my magtige teenwoordigheid volmaak, nie een van hierdie mense sal ooit in hierdie land ingaan nie. Al het hulle my groot krag en al die wondertekens gesien wat Ek in Egipte en ook in die woestyn gedoen het, het hulle My steeds bly uittart. Hulle het hulle geheel en al nie aan My gesteur nie. Daarom sal hulle nooit die land sien wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het nie. Nie een van hierdie spul wat my groot Naam onder hulle voete vertrap het, sal hulle voete in die land sit nie. [24-25] Maar my dienaar Kaleb is nie soos hulle nie. Hy het deur dik en dun aan my kant bly staan, daarom sal hy in die land wat hy help verken het, ingaan. Sy kinders sal in die land gaan bly, al bly die Amalekiete en die Kanaäniete nou nog in die valleie. Môre moet julle omdraai en die woestyn intrek in die rigting van die Rietsee.” *** Die Here vra toe vir Moses en Aäron: “Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm! Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het. Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly. Nie een van julle sal in die Beloofde Land ingaan nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun. “Wat julle kinders betref: Julle sê mos dat hulle almal daar in die nuwe land gevangenes sal wees. Wel, die teendeel is waar: dit is vir hulle wat Ek die nuwe land sal gee. Hulle sal sommer baie lief word vir die land wat julle verwerp het. Maar julle sal in hierdie woestyn doodgaan en julle geraamtes sal hier agterbly. Julle kinders sal vir 40 jaar in die woestyn rondtrek soos herders op soek na weiveld. Hulle sal die gevolge van julle ongehoorsaamheid aan My moet dra totdat julle hele geslag hier in die woestyn dood is. Omdat julle verspieders 40 dae lank in die land was om dit deur te kyk, sal julle nou vir julle straf ’n volle 40 jaar lank in die woestyn rondtrek. Vir elke dag wat hulle daar was, sal julle een jaar lank die gevolge van julle sonde moet dra. Dan sal julle agterkom hoe dit voel om My as julle vyand te hê. Ek belowe julle, Ek gaan al hierdie dinge laat gebeur met hierdie slegte klomp mense wat teen My in opstand gekom het. Hulle sal almal hier in die woestyn doodgaan. Ek, die Here, sê dit!” [36-37] Die Here het toe die tien spioene wat die volk met hulle bangmaakstories om die bos gelei en teen Hom in opstand laat kom het, net daar laat doodgaan. ’n Vreemde siekte het hulle dood veroorsaak. *** Van al twaalf spioene het net Josua en Kaleb oorgebly. Toe Moses die Here se woord aan die volk oorgedra het, het hulle verskriklik begin huil van skok en spyt. Vroeg die volgende oggend het hulle kamp opgebreek en na die berge noord van hulle begin trek met die idee om die land van daar af in te neem. Hulle het besluit om op te trek na die land toe wat die Here beloof het. Moses het hulle probeer keer en vir hulle gevra: “Waarom wil julle al weer nie na die Here luister nie? Julle gaan nie regkry wat julle beplan nie. Moenie die land probeer inneem nie, want die Here keur nie julle planne goed nie. Daarom is Hy nie by julle nie. Julle vyande gaan julle platloop. Die Amalekiete en Kanaäniete wag vir julle. Hulle gaan julle doodmaak. Die Here is nie saam met julle in die geveg nie, julle het dan die rug vir Hom gedraai.” Maar die volk het hierdie waarskuwing geïgnoreer. Moses en die ark van die Here het toe nie saam met hulle gegaan toe hulle na die noordelike dele van die bergagtige gebied toe opgeruk het nie. Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie gebied gebly het, het hulle aangeval en hulle ’n verpletterende neerlaag toegedien. Hulle het die Israeliete tot by Gorma teruggedryf. Die Here het vir Moses nog opdragte gegee om vir die Israeliete te gee: [2-3] “As julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee om in te bly en julle wil brandoffers en slagoffers vir My bring, is daar sekere voorwaardes wat julle moet nakom. So ’n offer mag ’n vrywillige offer wees, of ’n offer omdat iemand ’n belofte aan My gemaak het, of selfs ’n offer wat julle by een van die feeste vir My wil bring. So ’n offer moet dan ’n dier uit julle kuddes wees, ’n bees of een van julle kleinvee. Dit is al wat Ek sal aanvaar. *** Die persoon wat so ’n offer vir My bring, moet daarmee saam ook vir My ’n graanoffer bring, wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel, gemeng met ’n liter olyfolie. Saam met elke lam wat as ’n brandoffer of ’n slagoffer aan My geoffer word, moet julle ook ’n liter wyn as drankoffer saambring. “As dit ’n ram is wat geoffer word, moet die graanoffer bestaan uit drie kilogram meel gemeng met een en ’n half liter olyfolie, en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees. “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer, dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie. Bring ook twee liter wyn vir die drankoffer saam. Ek hou van so ’n vuuroffer se geur. “Elke bul en elke ram en elke skaap- of bokram moet aangebied word soos Ek nou vir julle voorgeskryf het vir die offer. As daar meer as een dier geoffer word, moet die ander offers van meel en wyn ook volgens die aantal diere vermeerder word. Elke Israeliet is verplig om hierdie offer volgens my voorskrifte aan My te bring. Dan is dit vir My aanvaarbaar. As daar iemand is wat van ’n ander volk is en by julle bly, of dit nou tydelik of permanent is, en daardie persoon wil ook ’n offer bring wat vir die Here aanvaarbaar is, geld dieselfde reëls. [15-16] Vir almal wat ’n offer wil bring, geld presies dieselfde reëls. Hierdie reëls bly ook in die toekoms geldig vir Israeliete en die persone van ’n ander afkoms wat by julle bly.” *** Die Here het verder vir Moses gesê: “As julle in die land Kanaän aankom en julle eet brood van die graan wat julle daar geoes het, moet julle onthou om vir die Here ’n offer te bring. Van die heel eerste growwe meel wat julle maal om brood te bak moet julle vir die Here ’n brood bak as ’n spesiale geskenk van dank vir die oes wat Hy julle gegee het. Dit is julle offer wat van die dorsvloer af kom. Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.” “Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe. Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly. “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai. Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.” Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het. Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit. Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe uit die kamp uitgevat en hom met klippe doodgegooi soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses nog ’n opdrag gegee: “Sê vir die Israeliete hulle moet vir hulle tosseltjies maak. Hulle moet hierdie tosseltjies met blou gare aan hulle klere se some vaswerk. Hulle moet dit ook in die toekoms bly doen. Hierdie tosseltjies moet julle aan al die Here se opdragte herinner. Elke keer as julle dit sien, sal julle aan My en my voorskrifte dink. Dan sal julle nie in die versoeking kom om My te verlaat en agter julle eie begeertes aan te loop nie. Op dié manier sal julle gereeld aan my opdragte herinner word. Julle sal weet dat julle totaal en al aan My behoort en vir my diens opsy gesit is. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte uit laat trek het sodat Ek alleen julle God kan wees. Ja, Ek is die Here julle God!” Op ’n dag het Korag die seun van Jishar, een van die afstammelinge van Kehat die seun van Levi, na Datan en Abiram toe gegaan en ’n plan met hulle bespreek om teen Moses se leierskap in opstand te kom. Hulle twee was die seuns van Eliab en hulle was lede van die stam van Ruben. Hulle het ook Pelet se seun On by hierdie sameswering betrek. Hulle het toe met 250 ander prominente leiers van die gemeenskap kragte saamgesnoer om van Moses as leier ontslae te raak. Hierdie groep het na Moses en Aäron toe gegaan en vir hulle gesê: “Julle het nou te ver gegaan! Hierdie hele volk is vir die Here kosbaar en Hy het hulle almal vir Hom uitgekies. Wie dink julle is julle om te maak asof julle belangriker is as enigiemand anders?” Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet. [6-7] Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.” *** Moses het verder vir Korag en dié wat by hom was, gesê: “Julle klomp Leviete moet mooi luister! Is julle nie tevrede daarmee dat die God van Israel julle tussen al die ander mense uitgekies het om in die tent van aanbidding namens die volk op te tree en hulle te bedien nie? Korag, is dit nie genoeg van ’n eer vir julle nie? Wil julle nou die priesterskap ook inpalm? Julle dink dit is Aäron teen wie julle in opstand kom, maar besef julle nie dat dit eintlik teen die Here is wat julle rebelleer nie? Wie is Aäron na alles?” Daarna het Moses vir Datan en Abiram, die seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het geweier om na hom toe te kom. “Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n vrugbare land soos Egipte laat wegtrek het om ons hier in die woestyn te laat doodgaan nie?” het hulle gevra. “Dink jy jy kan nou nog baasspeel ook oor ons? Wat meer is, jy het ons beslis nie na ’n vrugbare land toe gebring nie en hier is ook nie lande of wingerde wat ons kan erf nie. Dink jy jy kan ons aanhou mislei? Ons sal nie na jou toe kom nie!” Moses het baie kwaad geword vir hulle. Toe sê hy vir die Here: “Moenie hulle offers aanvaar nie. Ek het nooit enigeen van hulle te na gekom of selfs ’n eenvoudige dier soos ’n donkie van hulle gevat nie.” Vir Korag het hy gesê: “Sorg jy dat al jou volgelinge môre hier is sodat julle voor die Here kan kom staan. Aäron moet ook hier wees. Maak seker dat elkeen van jou 250 volgelinge ’n bak met warm kole het waarop julle wierook vir die Here kan brand. Aäron sal ook sy bak met kole en wierook bring.” Hulle het almal toe hulle bakke gevat, kole en wierook daarin gesit en saam met Moses en Aäron by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aanbid word. Intussen het Korag ook die res van die Israeliete teen Moses en Aäron opgestook en hulle het ook daar by die tent kom staan. Die volgende oomblik het die verblindende lig van die Here se teenwoordigheid vir almal sigbaar geword. Die Here sê toe vir Moses en Aäron: “Staan eenkant toe, weg van hierdie klomp mense af, want Ek wil hulle hier en nou van die aarde afvee.” Maar Moses en Aäron het op hulle knieë neergeval en begin bid: “O God, U is die bron van alles wat lewe. Gaan U nou al hierdie mense doodmaak omdat U kwaad is oor een man se sonde?” Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir al die mense om pad te gee van Korag, Datan en Abiram se tente af.” Moses en die leiers van die volk is toe haastig na Datan en Abiram se tente toe. Daar aangekom, sê hy vir die mense wat daar bymekaargekom het: “Gee dadelik pad van hierdie goddelose mense se tente af. Moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, want as julle dit doen, sal julle saam met hulle oor hulle sonde doodgemaak word.” Die volk het toe dadelik van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het saam met hulle gesinne uit hulle tente uitgekom en by die ingang gaan staan. Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, soos enigiemand anders, het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here nou ’n wonderwerk doen en die aarde laat oopskeur, sodat hulle met hulle gesinne en al hulle besittings in die skeur inval en lewendig begrawe word, sal julle weet dat hierdie mense die rug vir die Here gedraai het.” Moses se woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe skeur die aarde oop sodat Datan, Abiram en hulle gesinne daarin kan val. Dieselfde lot het ook vir Korag en sy ondersteuners getref. Hulle is almal lewendig in die skeur begrawe. Daar het niks oorgebly wat iemand aan hulle kon herinner nie. Die ander mense wat daar naby was en hulle gille gehoor het, het dadelik weggehardloop omdat hulle bang was dieselfde lot tref hulle ook. Daarna het die Here die ander 250 leiers wat met hulle vuurpanne en wierook by die tent gestaan het waar Hy aanbid word, met ’n groot vuur verbrand. Toe het die Here vir Moses gesê: “Sê nou vir die priester Eleasar, Aäron se seun, hy moet die kopervuurbakke wat in die vuur beland het, daar gaan uithaal, want hulle behoort aan My. Die kole wat daarin is, moet hulle iewers gaan weggooi. Daardie bakke behoort nou aan die Here. Al die manne aan wie dit behoort het, het sonde gedoen en met hulle lewe daarvoor geboet. Slaan dan al hierdie koperbakke plat en maak ’n deksel daarmee wat bo-oor die altaar kan pas. Elke keer as die Israeliete hierdie deksel sien, sal dit hulle aan hierdie verskriklike gebeurtenis herinner.” Die priester Eleasar het toe die kopervuurbakke gevat, hulle laat platslaan en ’n deksel vir die altaar daarmee gemaak. Dit moes die Israeliete daaraan herinner dat iemand wat nie ’n afstammeling van Aäron was, nie die reg gehad het om ooit die wierookoffer na die altaar van die Here toe te bring nie. As iemand dit wel sou waag, sou dieselfde lot hom tref as wat Korag en sy volgelinge getref het. Net die volgende dag het die hele volk teen Moses en Aäron in opstand gekom en vir hulle gesê: “Julle het die Here se volk uitgemoor!” Terwyl die klomp mense nog besig was om met Moses en Aäron te stry, het iets hulle aandag getrek daar by die tent waar die Here aanbid word. Die wolk van die Here het oor die tent neergesak en die verblindende helder lig van die Here se teenwoordigheid het daaruit geskyn. Moses en Aäron het toe by die ingang van die tent gaan staan, en die Here het vir Moses gesê: “Gee pad voor hierdie mense, want Ek wil hulle in ’n oogwink van die aarde af wegvee!” Moses en Aäron het op hulle knieë voor die Here neergeval. Toe sê Moses vir Aäron: “Maak gou! Vat jou bak en skep van die kole van die altaar af en gooi van die wierook daarin. Hardloop dan daarmee na die volk toe en vra namens hulle dat die Here hulle sonde sal vergeef. Want die Here se woede het al klaar oor hulle losgebars. Kyk, Hy straf hulle met ’n dodelike siekte wat oral onder die mense uitbreek.” Aäron het toe tussen die mense ingehardloop met sy vuurbak. Alhoewel die siekte al begin toeslaan het, het hy ter wille van hulle die wierook geoffer om by die Here vir hulle in te tree en vergifnis vir hulle sondes te bewerk. Terwyl hy nog so tussen die mense, die lewendes en die dooies, staan, het die epidemie skielik opgehou. Behalwe die mense wat in Korag se opstand dood is, is daar daardie dag nog 14 700 mense dood. Toe die epidemie opgehou het, is Aäron terug na Moses toe waar hy by die ingang van die tent gestaan het waar die Here aanbid word. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die twaalf leiers van die stamme om elkeen vir jou ’n kierie te bring. Jy moet elke leier se naam op sy kierie skryf. Maar jy moet Aäron se naam op Levi se kierie skryf omdat daar net een kierie vir elke stam mag wees. Sit dan die kieries voor die ark in die tent neer, daar waar Ek julle altyd ontmoet om met julle te praat. Ek sal die kierie van die persoon wat Ek uitkies om priester te wees, laat groei. Op dié manier sal Ek ’n einde maak aan die Israeliete se voortdurende gekerm en gekla teen jou en Aäron.” Moses het vir die volk vertel wat die Here gesê het. Elke stamleier het toe vir hom ’n kierie gebring. Aäron het ook sy kierie gebring, sodat daar twaalf kieries was, een vir elke stam. Moses het toe die kieries gevat en hulle in die tent gaan neersit, daar waar die Here se ark staan. Die volgende môre toe Moses by die tent ingaan, sien hy dat Aäron se kierie, wat die stam van Levi verteenwoordig, vol nuwe uitgroeisels was. Om die waarheid te sê, daar was nie net nuwe uitgroeisels aan die kierie nie, maar ook bloeisels en selfs ryp amandels. Moses het al die kieries uit die tent uitgevat en hulle vir die volk gaan wys. Daarna het elke leier sy eie kierie teruggevat. Toe sê die Here vir Moses: “Sit Aäron se kierie terug in die verbondsark as ’n bewys vir enigiemand wat weer in opstand teen julle wil kom. Bring nou dadelik ’n end aan almal se opstandigheid teen My, want as hulle nie daarmee ophou nie, gaan daar beslis nog meer mense doodgaan.” Moses het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Die Israeliete sê toe vir Moses: “Ons is so goed as dood! Dis verby met ons almal! Ons kan dit nie eens naby die tent van die Here waag om te offer sonder om dood te gaan nie. Ons sal almal net hier doodgaan.” Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns en julle familielede uit die stam van Levi sal verantwoordelik gehou word as enigiets met die werk by die tent waar Ek aanbid word, verkeerd loop. Maar net jy en jou seuns sal in die moeilikheid wees as iets verkeerd loop in die werk van die priesters. Kry manne uit die stam van Levi om jou en jou seuns met julle pligte by die tent te help. Hulle mag julle help met alles wat julle in die tent moet doen. Maak net seker dat hulle nie naby die altaar kom of aan die offergereedskap vat nie, want dan sal julle beslis almal doodgaan. Hulle is die enigste mense wat julle mag help met die take wat in die tent gedoen moet word. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag nie daar naby kom nie. Maar net jy en jou seuns mag diens doen in die heilige deel van die tent en die offers op die altaar bring. As julle dit presies doen soos Ek sê, sal Ek, die Here, nie weer vir Israel straf nie. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help. Hulle is opsy gesit om in die tabernakel vir My diens te doen. Hulle behoort aan My. Maar net jy en jou seuns mag die werk van die priesters doen, daar by die altaar en agter die gordyn in die heiligste deel van die tent. My geskenk aan julle is dat julle priesters mag wees in my diens. As iemand anders wat nie ’n priester is nie, dit probeer doen, moet hy doodgemaak word.” Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou uitgekies om toesig te hou oor al die offers wat vir My gebring word. Al daardie dele van die offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Hierdie reël geld vir altyd. Selfs daardie dele van die spesiale offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Dit sluit elkeen van die volgende soorte offers in: graanoffers, sondeoffers en skuldoffers. Hierdie dele van die offers wat julle toekom, moet julle in ’n afgesonderde plek eet. Julle moet onthou dat hierdie kos baie spesiaal is omdat dit eintlik aan My behoort. Slegs die mans mag daarvan eet. “Daar is nog ander offers wat ook aan julle behoort. Al die offers wat die Israeliete bring wat heen en weer voor My beweeg word, behoort ook aan jou en jou seuns en dogters. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. Dit is weereens ’n vaste reëling wat vir altyd geld. Ook die eerste opbrengs van die jaarlikse oeste wat hulle altyd vir My bring, behoort aan julle. Dit sluit in olyfolie, wyn en koring. Die eerste vars vrugte wat aan hulle bome ryp geword het en wat hulle vir My bring, behoort ook aan julle. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. Elke offer wat spesiaal deur die Israeliete vir My opsy gesit word, behoort ook aan julle. Die eersgebore kinders, of dit nou mens of dier is, wat aan die Here gewy word, behoort ook aan julle. Maar hier werk dit so: die eersgebore kinders en die eerstelinge van die onrein diere moet losgekoop word, sodat hulle kan teruggaan na hulle ouers en eienaars toe. Hulle moet op die ouderdom van een maand losgekoop word, teen die vasgestelde prys van 55 gram silwer per kop volgens die standaardgewigte wat hier by die tent gebruik word. Julle mag egter nie die eerstelinge van beeste, skape en bokke loskoop nie. Hulle moet aan My geoffer word. Hulle bloed moet as teken van my vergifnis van julle sondes teen die altaar gesprinkel word en hulle vet moet as ’n vuuroffer op die altaar verbrand word. Ek sal so ’n offer aanvaarbaar vind. Die vleis behoort aan julle net soos die bors en die regterboud van die offer wat heen en weer voor My beweeg word ook aan julle behoort. Al die spesiale offers wat die Israeliete vir My, die Here, bring, behoort aan jou en jou familie. Dit is ’n vaste reëling, ’n permanente ooreenkoms tussen My en jou en jou nageslag.” Die Here het ook vir Aäron gesê: “Nie jy of enige van die priesters sal enige grond van julle eie kry in die land waarheen Ek julle vat nie. Ek, die Here, sal sorg dat jy kry wat jy nodig het uit die offers wat vir My gebring word.” “Vir hulle werk in die tent waar Ek aanbid word, gee Ek vir die Leviete die tiendes wat die Israeliete uit hulle besittings vir My bring. Niemand anders mag dit selfs naby die tent waag waar Ek aanbid word nie. Dan sal hulle doodgaan. Dit is net die Leviete wat by die tent mag werk. En hulle sal verantwoordelik wees vir enigiets wat daar verkeerd loop. Dit is ’n reël wat ook vir julle nageslag geld. Die Leviete sal ook nie enige grond in die land kry nie, aangesien Ek die tiendes wat die volk vir My gebring het, vir hulle gee. Dit is hoekom Ek vir hulle sê dat hulle nie ’n deel van die land kry, soos die ander Israeliete nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Leviete: Van die tiendes wat hulle van die Israeliete gekry het, moet hulle weer vir My ’n tiende daarvan as spesiale offer vir die Here gee. Die Here sal dit beskou asof dit die eerste koring van julle eie land of die eerste wyn van julle wynperse af is. Die een tiende van die tiendes wat julle van die Israeliete gekry het, moet julle vir Aäron as sy deel gee. Dit is my manier om vir hom te sorg. Maak seker dat julle net die beste van wat julle kry, vir die Here opsy sit. “Sê ook vir die Leviete: As julle die beste deel bring, sal dit gesien word as julle offer van julle dorsvloer of julle wynpers af. Julle mag die deel wat oorbly, op enige plek saam met julle gesinne eet, want dit is die Here se beloning vir die werk wat julle in die tent doen daar waar Hy aanbid word. So lank as wat julle die beste deel van wat die Israeliete gebring het, vir die Here opsy sit, mag julle die res eet sonder om bang te wees dat julle iets verkeerds doen. Maak net seker dat julle eers die beste deel van die offers vir die Here opsy sit voordat julle die res eet. As julle dit nie doen nie, sal julle doodgemaak word omdat julle iets geëet het wat net aan die Here behoort.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Gaan sê vir die Israeliete hulle moet vir julle ’n koei bring wat rooi van kleur is. Die koei mag nie kruppel of vermink wees nie en sy mag ook nog nooit enige werk gedoen het nie. Bring haar vir die priester Eleasar sodat hy haar uit die kamp kan uitvat en haar daar kan laat slag. Hy moet dan van die bloed in ’n bak opvang en met sy vinger sewe keer daarvan in die rigting spat van die ingang van die tent waar Ek aanbid word. Daarna moet die koei voor Eleasar verbrand word, vel, vleis, bloed en binnegoed alles saam. Die priester moet dan ’n stukkie sederhout, hisoptakkies en ’n stukkie rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word. Daarna moet die priester sy klere was en bad voordat hy weer mag teruggaan kamp toe. Hy is egter vir die res van die dag nie geskik om diens te doen in die tent nie. Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere was en bad. Hy is ook vir die res van die dag onrein. ’n Rein persoon moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n skoon plek gaan bêre. Die Israeliete moet hierdie as saam met die reinigingswater gebruik. Die doel van hierdie ritueel is om vir hulle sonde vergifnis te vra. Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was, maar hy sal ook vir die res van die dag onrein wees. Hierdie is ’n permanente gebruik wat geld vir die Israeliete en vir die mense van ander volke wat by hulle bly.” “Iemand wat aan ’n lyk raak, mag vir ’n week nie enige amptelike godsdienstige funksies verrig by die tent waar Ek aanbid word nie. So ’n persoon moet homself op die derde en die sewende dag met die reinigingswater was, en dan kan hy weer godsdienstige take verrig. Indien hy dit nie presies so doen nie, bly hy onrein. As iemand aan ’n lyk geraak het en homself nie op hierdie manier gereinig het nie, en hy kom by die tent waar Ek aanbid word, maak hy dit onrein. Dan moet die ander Israeliete hom wegjaag uit hulle midde, want hy bly onrein. “Wanneer iemand in ’n tent doodgaan, is elkeen wat in daardie tent ingaan en alles wat daarbinne is, vir sewe dae onrein. Elke houer met kos of water wat nie ’n deksel opgehad het nie, is ook onrein. Enigiemand wat in die veld aan die liggaam raak van ’n soldaat wat dood is, of selfs aan ’n persoon wat aan natuurlike oorsake dood is, of selfs aan ’n geraamte of ’n graf, mag vir sewe dae geen amptelike godsdienstige take in die tent verrig of daar naby kom nie. “As iemand op hierdie manier onrein geword het, moet die persoon van die as van die offer vat wat vir mense se sondes geoffer word, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi. Dan moet iemand anders wat rein is, ’n hisoptakkie vat en dit in die water druk. Met hierdie takkie moet hy dan van die water oor die tent sprinkel, en oor al die voorwerpe en houers in die tent en ook oor die mense wat betrokke was. Dieselfde prosedure moet gevolg word in die geval van iemand wat aan ’n lyk, iemand wat vermoor is, ’n geraamte of ’n graf geraak het. Die rein persoon moet hierdie water op die derde en sewende dag op die onrein persoon sprinkel. Op die sewende dag moet die persoon wat nie aan enige amptelike godsdienstige aktiwiteite kan deelneem nie, homself skoon was. Sy klere ook. Teen die aand sal hy dan weer rein wees. “As iemand wat onrein is homself nie op dié manier gereinig het nie, moet hy uit die midde van Israel weggejaag word, want hy het die Here se heilige tent met sy eie onreinheid besoedel. Daarom mag hy nie meer as ’n Israeliet behandel word nie. Dit is ’n permanente reël. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet agterna ook sy klere was. Enige persoon wat aan die reinigingswater raak, sal vir die res van die dag onrein wees. Enigiemand of enigiets waaraan ’n onrein persoon raak, bly vir die res van daardie dag onrein.” Vroeg in die lente het die Israeliete in die Sinwoestyn aangekom en by Kades oorgebly. Mirjam is daar dood en hulle het haar toe daar begrawe. Daar was nie genoeg water om te drink vir almal nie, en hulle was weer vir Moses en Aäron kwaad. Hulle het vir Moses gesê: “Ons wens ons het liewer saam met die res van ons mense daar by die tent van die Here doodgegaan! Hoekom het jy ons na hierdie woestyn toe gebring? Sodat ons en al ons vee kan doodgaan? Is dit wat jy wil hê? Waarom het jy ons uit Egipte uit na hierdie ellendige plek toe laat trek? Hier is net mooi niks, nie koring of vye of druiwe of granate nie, hier is nie eers drinkwater nie!” Moses en Aäron is toe van daar af weg na die tent toe waar die Here aanbid word. By die ingang van die tent het hulle op hulle knieë gaan staan om te bid. Die Here het toe in ’n baie helder lig aan hulle verskyn en vir Moses gesê: “Vat Aäron se kierie, dan maak julle twee die volk daar by die rots bymekaar. Jy moet daar voor hulle almal met die rots praat, dan sal daar water uit die rots uitkom. Die water wat daar uitkom, sal genoeg wees vir hulle en hulle vee om van te drink.” Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here gesê het, en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Hy sê toe vir hulle: “Luister hier, julle klomp skoorsoekers, moet ons vir julle water uit hierdie rots uit laat kom?” Toe lig Moses sy arm op en slaan die rots twee keer met die kierie. Skielik het daar ’n groot stroom water uit die rots uitgestroom. Almal, mens en dier, het genoeg gehad om te drink. Maar die Here het met Moses en Aäron geraas: “Omdat julle nie op My vertrou het nie en nie na My, die groot en heilige God, voor die volk geluister het nie, sal julle nie hierdie volk in die nuwe land inlei wat Ek vir hulle gee nie.” Die mense het toe die plek die waters van Meriba, “waters waar daar rusie gemaak word”, genoem omdat die Israeliete daar opstandig was teen die Here, en omdat Hy daar vir hulle gewys het hoe groot en heilig Hy is. Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur om met hom te onderhandel. Hulle moes vir hom sê: “Hierdie boodskap is van u eie familie, die Israeliete af: U weet self hoe swaar ons al gehad het. Ons voorouers het mos na Egipte toe gegaan en baie lank daar gebly. Maar die Egiptenaars het ons en ons voorouers baie sleg behandel. Toe het ons by die Here hulp gaan soek, en Hy het ons gebede beantwoord en ’n engel gestuur om ons uit Egipte weg te lei. Op die oomblik is ons in Kades, ’n stad op die grens van u grondgebied. Ons vra toestemming om deur u land te trek. Ons sal nie deur u landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.” Die koning van Edom se antwoord was kort en kragtig: “Bly uit my land uit of maak julle reg vir oorlog!” Die Israeliete het toe weer mooi gevra: “Ons belowe om net op die grootpad te bly, en as ons of ons vee van die water in julle putte drink, sal ons daarvoor betaal. Ons is nie julle vyande nie, ons wil net die pad deur u land gebruik.” Maar die koning van Edom het botweg geweier en sy groot leër bymekaargemaak om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Omdat Edom geweier het om Israel deur hulle land te laat trek, moes Israel toe maar van koers verander. Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom. Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Aäron se einde is hier. Hy gaan sterf. Omdat julle twee by Meriba so hardkoppig was en nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy beslis nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete belowe het nie. Laat Aäron en sy seun Eleasar saam met jou teen die berg Hor uitklim. Daar moet Aäron sy priesterklere uittrek en dit vir sy seun gee om aan te trek. Aäron gaan daar op die berg sterf.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Die drie van hulle is toe saam die berg uit terwyl die volk hulle agterna gekyk het. Bo-op die berg het Moses Aäron sy priesterklere laat uittrek en dit toe vir sy seun Eleasar gegee om aan te trek. Aäron is daar op die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar van die berg afgekom. Toe die volk hoor dat Aäron dood is, het hulle ’n volle 30 dae lank oor hom gehuil en getreur. Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die suide van Kanaän gebly het, hoor dat die Israeliete in die rigting van Atarim trek, het hy hulle aangeval en party van hulle gevang en ontvoer. Die Israeliete het toe hierdie belofte voor die Here gemaak: “As U ons help om hierdie mense te wen, sal ons al hulle stede heeltemal vernietig en dit aan U gee as ’n offer omdat U ons ’n oorwinning gegee het.” Die Here het hulle gebed verhoor en hulle gehelp om die Kanaäniete te verslaan. Soos hulle belowe het, het hulle al die stede heeltemal verwoes en almal doodgemaak wat daarin gebly het. Hulle het toe die plek Gorma, “plek van verwoesting”, genoem. Omdat die Israeliete nie deur Edom kon trek nie, het hulle van die berg Hor af die pad in die rigting van die Rietsee gevolg. Langs die pad het die volk weer ongeduldig geword en teen God en Moses begin uitvaar: “Hoekom het julle ons uit Egipte uit laat trek net om in hierdie woestyn dood te gaan? Hier is nie behoorlike kos of water nie. Ons is nou al siek en sat vir hierdie walglike kos!” Toe stuur die Here giftige slange onder die volk in. Die slange het hulle gepik en baie van hulle is dood. Die volk het toe by Moses gaan bely: “Ons erken dat ons sonde gedoen het toe ons teen jou en die Here uitgevaar het. Tree tog vir ons in en vra die Here om hierdie slange weg te vat.” Toe bid Moses vir die volk. Hierop het die Here vir hom gesê: “Maak ’n afbeelding uit koper van so ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal en laat die paal regop staan. As iemand deur ’n slang gepik word en opkyk na daardie koperslang, sal hy bly leef.” Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. Elkeen wat deur ’n slang gepik is en opgekyk het na die koperslang, het bly leef. Daarna het die Israeliete verder getrek en by Obot kamp opgeslaan. Van daar af het hulle verder getrek en weer kamp opgeslaan by die ruïnes van Abarim in die woestyn, oos van Moab. Hulle het later van daar af weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei. Hulle het weer opgepak en verder getrek. Toe het hulle aan die noordekant van die Arnonrivier kamp opgeslaan in die woestyn wat tot teen die Amoriete se gebied loop. Die Arnonrivier vorm die grens tussen Moab en die Amoriete. Daarom lees ons die volgende woorde oor hierdie gebied in Die Boek van die Oorloë van die Here: “Die stad Waheb is in die Sufastreek. Die valleie en die Arnonrivier met die hange van die vallei strek tot by die stad Ar op die grens van Moab.” Daarvandaan het Israel getrek tot by Beër. Beër is die waterput waar die Here vir Moses gesê het: “Maak die volk bymekaar, dan gee Ek vir hulle water om te drink.” Daar het die Israeliete hierdie lied gesing: “Put, gee vir ons water; ons sal sing as ons dit sien! Die leiers het die put gegrawe en die leiers van ons volk het dit verder met hulle septers en kieries oopgemaak.” Die Israeliete het uit hierdie woeste gebied uit getrek na Mattana toe, en daarvandaan na Nagliël en van Nagliël af Bamot toe. Hiervandaan is hulle verder deur die vallei in die gebied van Moab in tot by die berg Pisga. Van hier af kan jy ver oor die woestyn uitkyk. Die Israeliete het boodskappers na koning Sihon, die koning van die Amoriete, toe gestuur om hom te vra: “Laat ons asseblief toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.” Maar Sihon wou nie toelaat dat Israel deur sy gebied trek nie. Hy het sy leër bymekaargekry om die Israeliete in die woestyn aan te val. Die geveg het toe by Jahas plaasgevind. Maar die Israeliete het hulle gewen en baie van hulle soldate doodgemaak. Hulle het hulle land ingeneem van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier wat die grens van Ammon is. Hulle het egter nie probeer om verder te gaan nie, want hierdie grens is deur baie soldate opgepas. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete in hierdie gebied verslaan en daarin gaan bly. Ook Gesbon en sy omringende dorpe is verslaan. Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het teen ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en toe sy hele gebied wat tot by die Arnonrivier strek, by hom afgevat. Dit is oor hierdie oorwinning wat die digters vroeër ’n lied geskryf het: “Kom na Gesbon toe en bou dit weer op, herstel koning Sihon se stad! “Hier van Gesbon van koning Sihon se stad af het die aanval soos ’n verwoestende veldbrand versprei. Dit het die stad Ar in Moab totaal verteer wat die Arnonhoogtes beheer het. “Siestog, julle arme Moabiete! Die einde is vir julle in sig, maar julle wou mos op die god Kemos vertrou! “Maar Kemos het julle seuns aan hulle eie lot oorgelaat en nou is hulle vlugtelinge. Al julle dogters het hy deur die Amoritiese koning Sihon laat vang. Ons het hulle heeltemal uitgeroei van Gesbon af tot by Dibon. Ons het alles vernietig tot by Nofag en Medeba.” Die Israeliete het in die Amoriete se land gaan bly. Moses het mense gestuur om te gaan kyk of dit moontlik was om die stad Jaser te oorrompel. Daarna het hulle die stad aangeval en dit saam met al die dorpe in die omgewing ingeneem en die Amoriete verdryf wat daar gebly het. Daar het hulle van koers verander en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het sy leër bymekaargekry en hulle aangeval. Die geveg het by Edreï plaasgevind. Maar die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom met sy hele leër en sy land in julle mag oor. Doen presies met hom wat jy met koning Sihon van die Amoriete gedoen het wat daar in Gesbon gebly het.” Die Israeliete het hulle toe verslaan. Hulle het koning Og, sy seuns en al sy mense doodgemaak. Hulle het ook sy land ingeneem. Die Israeliete het weer verder getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Moab aan die oostekant van die Jordaanrivier regoor Jerigo. Toe die koning van Moab, Balak die seun van Sippor, hoor wat die Israeliete met die Amoriete gedoen het, het hy en sy mense baie bang geword, want hulle het gesien hoe baie Israeliete daar was. In hulle paniek het hulle vir die leiers van Midian die volgende boodskap gestuur: “Hierdie horde mense gaan alles rondom hulle kaalstroop, soos ’n bees die gras rondom hom kaalvreet.” Koning Balak van Moab het toe boodskappers na Bileam die seun van Beor toe gestuur. Bileam was in Petor naby die Eufraatrivier in die land Ammau. Balak het vir hom laat weet: “Hier het nou net ’n hele volk uit Egipte uit aangekom, en oral waar hulle kom, vat hulle oor. Hulle het hulle nou hier op my voorstoep kom tuismaak. Hulle is te veel vir ons om baas te raak. Kom help my, asseblief! Ek wil hê jy moet ’n vloek op hulle kom sit; miskien sal ons hulle dan kan baasraak en uit ons land uit wegjaag. Ek weet mos as jy met jou buitengewone kragte mense seën, gaan dit regtig goed met hulle. Maar as jy mense vervloek, tref slegte dinge hulle beslis ook.” Die klompie leiers uit Moab en Midian wat as Balak se boodskappers opgetree het, is toe daar weg met die geld wat hulle vir Bileam sou gaan aanbied om te doen wat Balak vra. By Bileam aangekom, het hulle vir hom die situasie geskets. Hy sê toe vir hulle: “Bly vannag hier oor, dan sal ek môre vir julle sê wat die Here vir my gesê het.” Die leiers uit Moab het toe daar by Bileam oorgeslaap. Dié nag het God na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is die mans wat in jou huis is?” Hy het geantwoord: “Dit is boodskappers van koning Balak van Moab wat vir my moes kom sê: ‘Hier het nou ’n groot volk uit Egipte aangekom. Oral waar hulle kom, vat hulle oor. En hulle het hulle nou hier op my voorstoep kom tuismaak. Hulle is te veel vir ons om baas te raak. Kom help my, asseblief! Ek wil hê jy moet hulle kom vervloek; miskien sal ons hulle dan kan baasraak en uit ons land uit wegjaag.’” “Moenie saam met hulle gaan nie,” het God vir Bileam gesê. “Jy mag nie ’n vloek oor hierdie volk uitspreek waarin jy sê dat Ek hulle moet straf nie, want Ek het hulle alreeds met my goedheid geseën.” Toe Bileam die volgende môre opstaan, het hy vir Balak se leiers gesê: “Gaan dadelik huis toe. Die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.” Hulle is toe terug na Balak toe in Moab met die boodskap: “Bileam weier om saam met ons te kom.” Balak het weer probeer. Hierdie keer het hy nog meer en belangriker mense as die vorige keer gestuur. Hulle het vir Bileam gesê: “Koning Balak sê: Kom asseblief dadelik na my toe. Ek sal jou baie goed betaal vir jou dienste en sal doen net wat jy wil hê. Ek smeek jou: kom tog net hiernatoe en vervloek hierdie vreemde volk.” Maar Bileam het vir hulle gesê: “Selfs al sou Balak vir my sy paleis vol silwer en goud gee, mag ek net doen wat die Here my God my toelaat. Niks anders as dit nie. Maar bly julle ook ’n nag hier by my oor, dan kyk ons of die Here nie dalk weer met my hieroor wil praat nie.” Daardie nag het God weer met Bileam kom praat en vir hom gesê: “Aangesien hierdie manne jou kom haal het, gaan dan maar saam hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.” Die volgende môre het Bileam sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Moab vertrek. Maar die Here het kwaad geword omdat Bileam saam met hulle gegaan het. Daarom het Hy die Engel van die Here gestuur om in Bileam se pad te kom staan. Bileam het op sy donkie gery met twee van die amptenare saam met hom. Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met ’n groot swaard in sy hand, het die donkie verskrik uit die pad uit gespring die veld in. Bileam het die donkie geslaan en hom teruggedwing pad toe. Die Engel van die Here het toe gaan staan op ’n plek tussen die wingerde waar die pad baie nou was met ’n muur aan beide kante. Toe die donkie die Engel van die Here daar sien staan, het hy probeer om tussen die Engel en die muur deur te skuur. In die proses het hy Bileam se voet teen die muur vasgedruk. Bileam was kwaad en het weer die donkie geslaan. Die Engel van die Here het toe weer ’n ent vorentoe in die pad gaan staan. Hierdie keer was die pad so nou dat daar geen deurkomkans vir die donkie was nie. Toe die donkie hierdie keer die Engel van die Here sien staan, het hy sommer net onder Bileam gaan lê. Bileam het in sy woede die donkie met sy stok toegetakel. Toe laat die Here die donkie deur ’n wonderwerk met Bileam praat. “Dit is nou al die derde keer dat jy my so slaan,” het die donkie skielik vir Bileam gesê. “Wat het ek aan jou gedoen om dit te verdien?” “Jy hou my vir die gek,” het Bileam gesê, “as ek ’n swaard by my gehad het, het ek jou net hier doodgemaak!” Toe vra die donkie vir Bileam: “Is ek nie dieselfde donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Het ek al ooit voorheen so met jou gemaak?” “Nee,” moes Bileam erken. Die Here maak toe Bileam se oë oop en hy het die Engel van die Here met sy groot swaard daar in die pad sien staan. Toe buig Bileam voor die Engel. Die Engel van die Here vra toe vir hom: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou juis kom voorkeer, want jy is op pad na jou ondergang toe. Ek het drie maal voor jou kom staan; daarom het die donkie elke keer uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou beslis doodgemaak. Maar die donkie sou Ek laat leef het.” Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek is jammer oor wat ek gedoen het. Dit was verkeerd. Ek het nie besef U staan voor my in die pad nie. Ek sal omdraai as U nie wil hê ek moet verder gaan nie.” Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Nee, gaan saam met hierdie mense, maar jy mag net sê wat Ek vir jou sê, niks anders nie.” Bileam is toe verder saam met Balak se boodskappers. Toe koning Balak hoor dat Bileam op pad is, is hy reguit na hom toe. Hulle het mekaar raakgeloop by ’n Moabitiese stad langs die Arnonrivier op die grens van sy gebied. “Hoekom het jy nie gekom toe ek jou die eerste keer laat roep het nie?” het Balak vir Bileam gevra. “Het jy gedink ek sou jou nie goed genoeg betaal nie?” Bileam het geantwoord: “Ek is mos nou hier. Maar onthou, ek kan niks uit my eie sê nie. Ek kan net sê wat God my toelaat om te sê.” Bileam is saam met Balak daar weg na Kirjat-Gusot toe. Daar het die koning beeste en skape as offers laat slag en vir Bileam en al die belangrike mense wat by hom was van die vleis gegee. Die volgende oggend het Balak vir Bileam teen die hoogtes van Bamot-Baäl laat uitklim. Toe Bileam van daar af kyk, het hy ’n gedeelte van die Israeliete gesien. Bileam het vir Balak gesê: “Bou nou vir my sewe altare hier en kry sewe bulle en sewe ramme gereed om te offer.” Balak het dit gedoen. Daarna het hy en Bileam ’n bul en ’n ram op elkeen van die altare geoffer. Toe sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by die brandoffers. Ek gaan so ’n bietjie eenkant toe om te kyk of die Here met my wil praat. Wat Hy ook al vir my sê, sal ek vir jou ook kom sê.” Hy is toe na ’n oop stuk grond toe hoër op teen die berg. Daar het God hom ingewag. Bileam sê toe vir God: “Ek het sewe altare laat bou en op elkeen ’n bul en ’n ram geoffer.” Die Here sê toe vir hom: “Gaan nou terug na Balak toe en gee vir hom hierdie boodskap van My af.” Toe Bileam by Balak aankom, het hy en al die amptenare van Moab nog steeds by die brandoffers gestaan. Toe sê Bileam vir hulle: “Balak het my van Aram af laat kom. Die koning van Moab het my van die berge van die ooste af laat haal. ‘Kom vervloek Jakob,’ het hy gesê. ‘Kondig ’n ramp aan oor Israel.’ Maar hoe kan ek mense vervloek wat God nie vervloek nie? Hoe kan ek ’n ramp aankondig as die Here dit nie aangekondig het nie? Hier van die bergtop af kyk ek af op Israel. Ek sien ’n volk wat op hulle eie woon, weg van die ander nasies af. “Wie kan Jakob se kinders en kleinkinders tel? Hulle is ontelbaar. Wie kan probeer om selfs ’n kwart van Israel se mense te tel? Dis heeltemal onmoontlik. “Ek wens ek kan eendag doodgaan as iemand wat gedoen het wat God vra. Mag my lewe soos hierdie volk s’n eindig.” Toe vra Balak vir Bileam: “Wat het jy aangevang? Ek het jou hiernatoe laat kom om my vyande te vervloek, en nou kom jy en jy wens hulle voorspoed toe!” Bileam antwoord toe: “Ek kan tog niks anders sê as wat die Here vir my gesê het nie!” Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na ’n ander plek toe waarvandaan jy net ’n deel van die Israeliete kan sien. Van daar af kan jy hulle dan vir my vervloek.” Hulle is toe na die vallei van Sophim toe tot op die top van die berg Pisga. Daar het Balak weer sewe altare gebou en ’n bul en ’n ram op elkeen geoffer. Toe sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by die brandoffers. Ek gaan so ’n bietjie eenkant toe om te kyk of die Here met my wil praat.” God het toe vir hom gesê: “Gaan nou terug na Balak toe en gee vir hom die boodskap van My af.” Toe Bileam terugkom, het Balak en die amptenare van Moab nog steeds by die brandoffers gestaan. Balak wou toe by hom weet: “Wat het die Here gesê?” Toe antwoord Bileam: “Staan ’n bietjie nader, Balak, seun van Sippor. Luister mooi! God is nie ’n mens nie, daarom lieg Hy nie. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Dink jy God belowe iets en doen dit nie? Het Hy al ooit iets gesê en nie sy woord gehou nie? “God het my beveel om hulle te seën, om sy goedheid oor hulle af te bid. Dit kan ek nie verander nie. “G’n teëspoed sal Jakob tref nie; Israel sal nie swaarkry nie, want die Here hulle God is by hulle. Hulle is baie opgewonde omdat Hy hulle koning is. “God het hulle uit Egipte laat trek en Hy veg vir hulle met sy reusekrag wat g’n gelyke ken nie. “Geen towerspreuk kan iets aan Jakob doen nie. Geen waarsêery het enige krag oor Israel nie. “Van nou af sal die mense oor Israel praat en sê: ‘Kyk wat het God alles vir hulle gedoen!’ Die volk Israel is soos ’n magtige leeu wat nie gaan lê totdat hy sy prooi verskeur en kant en klaar opgevreet het nie.” Toe sê Balak vir Bileam: “As jy dan nie hierdie volk gaan vervloek nie, mag jy hulle ten minste ook nie seën nie.” Bileam antwoord: “Ek het mos vir jou gesê ek kan net doen wat die Here my toelaat om te doen.” Toe sê Balak vir Bileam: “Kom ek vat jou na nog ’n ander plek toe. Miskien sal God dat jy hulle van daar af vervloek.” Hy vat hom toe na die top van die berg Peor toe wat oor die woestyn uitkyk. Bileam sê toe weer vir hom: “Bou vir my sewe altare en bring sewe bulle en sewe ramme hiernatoe sodat ons hulle kan offer.” Balak het dit gedoen en hulle het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer. Teen hierdie tyd het Bileam besef dat die Here die Israeliete wil seën met sy goedheid. Daarom het hy nie soos die vorige kere eenkant toe gegaan om te hoor of die Here iets anders wil sê nie. Al wat hy gedoen het, was om om te draai en na die woestyn se kant toe te kyk. Toe hy die Israeliete se kamp so voor hom sien met al die stamme so bymekaar, het God se Gees oor hom gekom, en hy het die volgende gesê: “Hierdie is wat Bileam die seun van Beor gesien het nadat die Here sy oë oopgemaak het. Dit is hy wat die Almagtige in ’n visioen sien met sy oë wawyd oop en wat voor Hom in gebed neerval. “Hierdie is sy woorde: Hoe mooi lyk julle tente, Jakob, en hoe pragtig is julle kampplek, Israel. Dit lyk soos lanings palmbome, soos ’n tuin langs ’n rivier. Soos rye aalwyne wat deur die Here geplant is of sederbome wat by waterryke plekke groei. “Hulle het reën in oorvloed, daar is oorgenoeg water vir gesaaides. Hulle koning is belangriker as Agag en sy koninkryk sal oral bekend wees. “God het hulle uit Egipte uit laat trek en Hy veg vir hulle met sy reusekrag wat g’n gelyke het nie. Die Israeliete vee hulle vyande voor hulle weg en breek hulle bene en hulle pyle in stukkies. Israel is soos ’n leeu wat gaan lê het om te rus. Wie waag dit om so ’n leeu op te jaag? Gelukkig is elkeen wat jou seën, o Israel, en vervloek is elkeen wat jou vervloek! Die Here sal hulle straf.” Teen dié tyd was Balak al woedend vir Bileam. Hy het sy vuiste in die lug voor hom geswaai en gesê: “Wat dink jy doen jy? Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou al drie keer na mekaar geseën! Maak dat jy hier wegkom! Gaan terug na jou huis toe. Ek was van plan om jou goed te betaal, maar die Here het gesorg dat jy niks kry nie!” Toe sê Bileam vir Balak: “Onthou jy nie wat ek vir jou laat weet het nie? Ek het gesê: Selfs al sou Balak vir my sy paleis vol silwer en goud gee, kan ek nog steeds net doen wat die Here my God my toelaat. Niks anders as dit nie. Ek gaan nou terug na my eie mense toe. Maar net voordat ek gaan, laat ek net eers vir jou vertel wat die Israeliete met jou volk gaan doen.” Hierdie is wat Bileam die seun van Beor gesien het nadat die Here sy oë oopgemaak het. Dit is hy wat die Almagtige in ’n visioen sien met sy oë wawyd oop en wat voor Hom in gebed neerval. “Ek sien die toekoms, en ek sien die volk Israel. Daar sal ’n koning uit hierdie volk gebore word en hy sal soos ’n ster wees wat helder skyn. Hy sal Moab se leiers verslaan en Set se mense vernietig. Hy sal Edom verower en Seïr, wat nog altyd sy vyand was, se gebied inneem. Hy sal Israel op ’n triomftog lei. “Die regeerder kom uit Jakob. Hy sal die mense uit die stede wat oorgebly het, doodmaak.” Bileam het ook ’n woord vir die Amalekiete gehad: “Amalek was die magtigste nasie van almal, maar sy vernietiging is voor die deur.” Vir die Keniete het Bileam gesê: “Julle bly op ’n baie veilige plek; soos ’n voël wat op ’n rots nes gemaak het. Maar Kain se nageslag sal verdwyn wanneer die Assiriërs hulle as gevangenes wegvoer.” Hierdie was Bileam se laaste uitspraak: “Wie kan bly lewe as God dit nie wil hê nie? Daar kom skepe van Siprus af, hulle sal vir Assirië en Heber aanval, maar hulle sal self ook vernietig word.” Toe is Bileam huis toe en Balak het sy eie koers ingeslaan. Terwyl die Israeliete by Sittim gekamp het, het party mans seksuele verhoudings met die Moabitiese vroue van daardie omgewing aangeknoop. Hierdie vroue het hulle uitgenooi om die offerfeeste ter ere van hulle afgode by te woon. Hulle het gegaan en saam met hulle geëet en hulle gode aanbid. Dit het gemaak dat Israel die Moabitiese god, Baäl-Peor, begin aanbid het. Hieroor was die Here baie kwaad vir die Israeliete. Hy het vir Moses gesê: “Vat al die leiers van hierdie mans en hang hulle buite voor my woonplek op. Dan sal my woede bedaar.” Moses het toe vir die leiers van Israel gesê: “Elkeen van julle moet die mense van julle stamme wat aanhangers van Baäl-Peor geword het, doodmaak.” Moses en ’n klomp Israeliete was juis besig om by die ingang van die tent waar die Here aanbid word, te staan en huil oor alles wat gebeur het, toe ’n Israelitiese man ewe onbeskaamd met ’n Midianitiese vrou daar aankom. Hy is saam met haar in sy tent in waar almal dit kon sien. Eleasar se seun Pinehas, Aäron se kleinseun, het dit ook gesien. Hy het opgestaan, ’n spies gevat en die twee die tent in gevolg. Daar het hy die spies deur hulle al twee gesteek. Nadat hy dit gedoen het, het die siekte-epidemie waarmee die Here die Israeliete gestraf het, skielik opgehou. In daardie stadium was daar reeds 24 000 mense in die epidemie dood. Die Here het toe vir Moses gesê: “Dit is as gevolg van Pinehas se optrede dat Ek nie meer vir julle kwaad is nie. Hy het geweier dat my eer aangetas word en dat die volk ’n ander god aanbid. Daarom het Ek nie die volk vernietig soos Ek wou nie. Sê vir hom dat Ek met hom ’n ooreenkoms aangaan wat vir hom vir altyd voordeel inhou. Ek belowe dat hy en sy nageslag vir altyd priesters in my diens sal wees, want hy het vir my Naam opgekom. Hy het vir die volk by My ingetree en gekeer dat Ek hulle vir hulle sonde straf.” Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, se naam was Simri. Hy was die seun van Salu, ’n belangrike man uit die stam van Simeon. Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, se naam was Kosbi, die dogter van Sur, wat ’n stamhoof van Midian was. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet die Midianiete aanval en doodmaak, want kyk hoe het hulle julle mislei om Baäl-Peor te aanbid en sondes te doen soos dié met Kosbi, die Midianitiese stamhoof se dogter, wat doodgemaak is op die dag toe die epidemie opgehou het.” Na die siekte-epidemie het die Here vir Moses en vir Eleasar, Aäron se seun, gesê: “Tel nou die hele volk. Julle moet al die mans van elke stam tel wat twintig jaar en ouer is en wat geskik is vir militêre diens.” [3-4] In daardie stadium was die Israeliete se kamp in die vlakte van Moab, langs die Jordaanrivier, regoor Jerigo. Moses en Eleasar het toe die leiers beveel om so ’n opname te maak, presies soos die Here voorgeskryf het. Hier volg nou ’n lys van die Israeliete wat lank terug reeds uit Egipte weg is. *** Ruben was die oudste seun van Israel: die Rubenfamilies was dié van Ganok, Gesron en Karmi. Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man. Pallu se seun was Eliab, en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Dit was dié Datan en Abiram wat as leiers deur die vergadering verkies was, maar wat saam met Korag en sy trawante teen Moses en Aäron in opstand gekom het. Die grond het oopgeskeur en hulle het saam met Korag en sy volgelinge in die skeur verdwyn. Dit was ook toe dat die Here die 250 man met vuur verbrand het om Israel te waarsku. Korag se seuns is egter nie dood nie. Die families in die stam van Simeon was dié van Jemuel, Jamin, Jakin, Serag en Saul. Die Simeonfamilies was altesaam 22 200 man. Die families in die stam van Gad was dié van Sifjon, Gaggi, Suni, Osni, Eri, Arod en Areli. Die Gadfamilies was altesaam 40 500 man. Er en Onan was Juda se seuns, maar hulle is vroeër al in Kanaän dood. Die families in die stam van Juda was dié van Sela, Peres en Serag. Die Peresfamilies was dié van Gesron en Gamul. Die Judafamilies was altesaam 76 500 man. Die families in die stam van Issaskar was dié van Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Die Issaskarfamilies was altesaam 64 300 man. Die families in die stam van Sebulon was dié van Sered, Elon en Jagleël. Die Sebulonfamilies was altesaam 60 500 man. Die families in die stam van Josef was dié van Manasse en Efraim. Makir, voorvader van Gilead, was uit die Manassefamilie. Die Gileadfamilie was dié van Iëser, Gelek, Asriël, Sekem, Semida, Gefer en Selofgad. Selofgad, Gefer se seun, het nie seuns gehad nie, net dogters. Sy dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Die Manassefamilies was altesaam 52 700 man. Die Efraimfamilies was dié van Sutelag, Beker en Tagan. Eran was uit die Sutelagfamilie. Die Efraimfamilies was altesaam 32 500 man. Dit was al die Joseffamilies. Die families in die stam van Benjamin was dié van Bela, Asbel, Agiram, Sefufam en Gufam. Die Belafamilies was dié van Ard en Naäman. Die Benjaminfamilies was altesaam 45 600 man. Die familie in die stam van Dan was dié van Sugam en sy nageslag. Dit was die enigste Danfamilie. Die Sugamfamilie was altesaam 64 400 man. Die families in die stam van Aser was dié van Jimna, Jiswi en Beria. Die Beriafamilies was dié van Geber en Malkiël. Aser het ook ’n dogter gehad, Serag. Die Aserfamilies was altesaam 53 400 man. Die families in die stam van Naftali was dié van Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Die Naftalifamilies was altesaam 45 400 man. Die groottotaal van al die Israeliete was 601 730 man. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Verdeel nou die land onder die verskillende stamme. Gee aan elke stam die grond wat hulle toekom volgens die grootte van die stam. Jy moet lootjies trek om te bepaal watter stam watter gedeelte van die land kry. Jy moet die grond volgens die grootte van die verskillende stamme verdeel. Laat die stamme saam lootjies trek. Elke stam moet ’n stuk grond kry.” Die families van die stam van Levi wat getel is, was dié van Gerson, Kehat en Merari en ook dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die oupa van Amram, en Amram se vrou was Jogebed, ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore en haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam. Aäron was die pa van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Nadab en Abihu is mos dood toe hulle vuur en offers na die altaar toe gebring het waarvoor die Here nie gevra het nie. Die Leviete van ’n maand en ouer was altesaam 23 000 man. Hulle is nie saam met die ander Israeliete in die sensus getel nie, want hulle het mos nie grond as eiendom gekry nie. Moses en Eleasar het hierdie sensus opgeneem in die vlakte van Moab waar die volk langs die Jordaanrivier regoor Jerigo gekamp het. [64-65] Toe hulle na die lyste kyk, was daar nie een van die mans se name daarin wat in die vorige sensus in die Sinaiwoestyn getel is nie. Hulle was reeds almal dood, soos die Here belowe het. Die enigste twee wat oorgebly het, was Jefunne se seun Kaleb en Nun se seun Josua. [1-2] Daar was ’n man met die naam Selofgad. Hy was ’n seun van Gefer, die seun van Gilead, die seun van Makir, die seun van Manasse, die seun van Josef. Selofgad het vyf dogters gehad. Hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Op ’n dag het hierdie dogters na Moses en Eleasar toe gekom waar hulle saam met die leiers van die volk en al die ander Israeliete by die tent van die Here in ’n vergadering was. *** “Ons pa,” het hulle gesê, “is in die woestyn dood sonder dat hy ooit seuns gehad het. Hy was nie een van Korag se trawante wat teen die Here in opstand gekom het nie. Hy het as gevolg van sy eie sonde gesterf. Dit is mos nie regverdig dat ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie seuns gehad het nie. Daarom vra ons dat u vir ons sy grond tussen sy familie sal gee wat hy moes kry.” Moses het die saak aan die Here gestel, en die Here het vir hom gesê: “Selofgad se dogters is reg, jy moet vir hulle grond gee tussen hulle familie. Hulle moet die deel erf wat hulle pa sou kry. Gaan sê ook vir die Israeliete: As iemand doodgaan sonder dat hy seuns het, behoort sy grond aan sy dogters. As hy nie dogters het nie, moet die grond na sy broers toe gaan. As hy nie broers het nie, moet die grond na sy ooms toe gaan aan sy pa se kant van die familie. As sy pa nie broers gehad het nie, gaan die grond na sy naaste bloedfamilie toe. Hierdie reëling wat Ek vir Moses gegee het, geld vir altyd.” Die Here het vir Moses gesê: “Klim die Abarimberg uit tot bo. Gaan staan daar en kyk na die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee. As jy die land gesien het, sal jy ook doodgaan net soos jou broer, Aäron, want julle twee het mos nie na My geluister daar by Meriba in die Sinwoestyn nie. Dit was mos daar naby Kades dat die volk met julle baklei het, en julle julle teen My verset het.” Toe sê Moses vir die Here: [16-17] “Here, U is die God van almal wat lewe. Ek pleit by U, stel tog net ’n leier aan oor dié klomp mense om hulle in die nuwe land in te lei en hulle te help as hulle moet veg. Anders sal hulle soos ’n trop skape sonder ’n herder wees.” *** Toe sê die Here vir Moses: “Laat Josua die seun van Nun na jou toe kom, want Ek het hom toegerus om hierdie werk te kan doen. Sit jou hande op sy kop en laat Eleasar en die hele volk hiernatoe kom sodat hulle dit kan sien. Sê dan daar voor hulle almal vir hom wat sy taak gaan wees, en stel hom as jou opvolger en as die volk se nuwe leier aan. Dra ’n deel van die gesag wat Ek aan jou gegee het aan hom oor sodat die volk sal besef hulle moet na Josua luister. Wanneer hy my raad en hulp nodig het, moet hy na die priester Eleasar toe gaan en hy sal my raadpleeg met die urim, ’n hulpmiddel wat Ek vir die priester gegee het om vir die volk te sê wat Ek wil hê. As Ek so met Eleasar gepraat het, moet Josua en die volk na hom luister.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het Josua voor die priester Eleasar en die hele volk laat staan, sy hande op sy kop gesit en hom as sy opvolger aangestel, presies soos die Here gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete om op die tye wat Ek bepaal het, offers en vuuroffers vir My te bring. Dit sal vir My aanvaarbaar en goed wees. “Hierdie is dan die vuuroffers wat hulle vir die Here moet bring: Daar is ’n brandoffer wat elke dag vir die Here gebring moet word. Hierdie offer bestaan uit twee jong rammetjies van ’n jaar oud. Hulle mag nie iewers ’n liggaamsgebrek hê nie. Offer een in die oggend en een in die aand. Saam met hierdie offer moet daar ook ’n graanoffer gebring word wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel wat met ’n liter suiwer olyfolie aangemaak is. Dit is die brandoffer wat die Here reeds by die berg Sinai ingestel het en waarvan Hy hou. Die drankoffer wat by hierdie offer hoort, is ’n liter wyn wat oor die altaar uitgegooi word. Die tweede lam moet in die aand geoffer word met presies dieselfde graan- en drankoffers as dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer waarvan die Here hou.” “Op die sabbat, die sewende dag van die week waarop almal moet rus, moet daar twee jaaroud rammetjies geoffer word. Hulle moet gesond wees en niks makeer nie. Saam met hulle is die graanoffer van drie kilogram meel met olyfolie gemeng en ’n drankoffer wat daarby hoort. Hierdie sabbatsoffer is ’n ekstra offer wat op die sabbat gebring moet word saam met die gereelde daaglikse offer.” “Op die eerste dag van die maand moet julle vir die Here die volgende brandoffer bring: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, offer, saam met elke ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Dit is ’n brandoffer wat met vuur verbrand word. Dit is vir die Here ’n offer waarvan Hy hou. Die drankoffer wat hierby hoort, is twee liter wyn saam met elke bul, een en ’n half liter saam met die ram en een liter elk vir elke lam. Hierdie brandoffer moet elke maand van die jaar gebring word. Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer met die drankoffer wat daarmee saamgaan, steeds gebring word. Op die eerste dag van die maand moet daar ook ’n bokram as ’n offer vir die volk se sondes vir die Here geoffer word.” “Die paasfees, wat op die veertiende van die eerste maand gehou word, is ’n fees wat gehou word om die Here te eer. Op die volgende dag begin die fees van die brood wat sonder suurdeeg gemaak word. Die fees hou sewe dae lank aan en vir hierdie sewe dae mag julle net brood sonder suurdeeg eet. Op die eerste dag van die fees moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op dié dag mag niemand werk nie. Dan moet julle vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit moet ’n brandoffer wees van twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram hiervan en saam met elke lam een kilogram hiervan. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde oggendbrandoffers moet nog steeds gebring word bo en behalwe hierdie offer. Julle moet ook vir die volle sewe dae ’n kosoffer bring wat vir die Here verbrand kan word, want dit is die offers waarvan Hy hou en wat Hy aanvaar. Hierdie offers word geoffer bo en behalwe die gereelde brandoffer en die drankoffer. Op die sewende dag van die fees moet julle weer vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie.” “Op die eerste dag van die oesfees, sewe weke na paasfees, moet julle ’n graanoffer uit die nuwe oes bring om vir die Here dankie te sê vir die oes. Dan moet julle ’n spesiale lofprysingsgeleentheid hou. Op daardie dag mag niemand werk nie. Dan moet julle vir die Here ’n spesiale brandoffer bring waarvan Hy hou: twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer en die graanoffer steeds gebring word. Sorg ook dat die diere wat geoffer word, niks makeer nie.” “Op die eerste dag van die sewende maand moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie. Dit is ’n dag waarop julle moet feesvier. Dan moet julle vir die Here ’n brandoffer bring van ’n jong bul, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. Saam met die bul moet julle ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, offer, saam met elke ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde maandelikse en daaglikse brandoffers, met hulle graan- en drankoffers, moet egter nog steeds gebring word. Dit is die soort offers waarvan die Here hou en wat Hy aanvaar.” “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle weer vir ’n besondere lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op dié dag moet julle oor julle sonde nadink en dit voor My bely. Niemand mag op dié dag werk nie. Julle moet vir die Here ’n brandoffer bring van ’n jong bul, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. Saam met die bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met die ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Dit is bo en behalwe die gewone sondeoffer wat julle bring om vergifnis te vra vir julle sonde, asook die brandoffers met die graan- en drankoffers.” “Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie. Dit is die begin van die huttefees, ’n fees tot eer van die Here om dankie te sê vir sy goedheid en sorg. Dit hou sewe dae lank aan. Julle moet vir die Here ’n brandoffer bring van dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Die gewone drankoffers hoort natuurlik ook hierby. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Behalwe hierdie offers moet die daaglikse brandoffers, met hulle graan- en drankoffers, steeds gebring word. “Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers bring. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die normale daaglikse brandoffers, met hulle graan- en drankoffers, moet ook steeds gebring word. “Op die derde dag van die fees moet julle elf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers offer. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers, met die graan en drankoffers, moet ook steeds gebring word. “Op die vierde dag van die fees moet julle tien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer. Verder moet julle ook die voorgeskrewe graan- en drankoffers offer. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers moet ook nog steeds gebring word. “Op die vyfde dag van die fees moet julle nege jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers offer. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers moet steeds gebring word. “Op die sesde dag van die fees moet julle agt jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat gesond is, offer. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers offer. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers moet ook nog gebring word. “Op die sewende dag van die fees moet julle sewe jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer. Julle moet ook die graan- en drankoffers offer. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers moet steeds gebring word. “Die agtste dag moet julle ook nog feesvier. Niemand mag enige werk doen nie. Die brandoffer wat julle op dié dag vir die Here moet bring, is ’n jong bul, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. Bring ook die graan- en drankoffers. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers moet ook gebring word. “Dit is die lys brandoffers, graanoffers, drankoffers en eteoffers wat julle vir die Here moet offer op die vasgestelde feesdae. Hierby kom ook nog die gelofteoffers en vrywillige offers wat enige persoon enige tyd mag bring.” Moses het dit alles vir die Israeliete gesê net soos die Here dit aan hom oorgedra het. Moses het die leiers van die stamme bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Hier is nog opdragte van die Here: As iemand ’n belofte aan die Here maak of onder eed iets belowe, mag hy nie sy woord breek nie; hy moet presies doen wat hy gesê het. “As ’n jongmeisie voor haar troue terwyl sy nog in haar ouerhuis woon, ’n belofte aan die Here maak of iets onder eed belowe, en haar pa kom hiervan te hore en hy sê niks daarvan nie, bly al die beloftes of verpligtings geldig. Maar as haar pa daarvan hoor en dit dadelik stopsit, is al haar beloftes ongeldig. Die Here sal haar nie aan haar woord hou nie omdat haar pa haar gekeer het om te doen wat sy belowe het. “Dit kan gebeur dat ’n ongetroude meisie ’n oorhaastige belofte aan die Here gemaak het voordat sy trou. As haar man daarvan te hore kom en hy sê niks nie, bly hierdie beloftes staan. Maar as haar man dit dadelik afkeur sodra hy daarvan hoor, is die beloftes wat sy gemaak het, ongeldig. Die Here sal haar nie daaraan hou nie. “As ’n weduwee of ’n geskeide vrou ’n belofte aflê of ’n eed sweer voor die Here, bly dit van krag. “As ’n getroude vrou ’n belofte aan die Here maak of iets onder eed belowe en haar man hoor hiervan en hy sê niks daarvan nie, bly al die beloftes wat sy gemaak het, geldig. Maar as haar man dit nietig verklaar, is die beloftes wat sy gemaak het, ongeldig. Die Here sal dit nie teen haar hou nie omdat haar man haar gekeer het om te doen wat sy belowe het. Haar man het die reg om enige belofte of eed wat sy aflê, nietig te verklaar. As hy egter nie teen die volgende dag, nadat hy van die belofte of eed gehoor het, beswaar maak nie, moet sy haar beloftes nakom. Want as hy stilbly, dan keur hy haar beloftes aan die Here goed. As hy wel van haar belofte gehoor het en eers later beswaar maak, sal hy die verantwoordelikheid vir haar skuld dra.” Dié reëls het die Here vir Moses gegee in verband met die verantwoordelikhede wat ’n getroude man oor sy vrou se beloftes het, asook oor sy ongetroude dogter se beloftes. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet wraak neem op die Midianiete omdat hulle die Israeliete verlei het om afgode te aanbid. Na dit sal jy sterf.” Moses het toe vir die volk gesê: “Kies ’n groep soldate en stuur hulle om die Midianiete in die Naam van die Here te gaan straf. Julle moet 1 000 soldate uit elke stam kies om te gaan veg.” Hulle het toe 1 000 soldate uit elke stam gekies en hulle met wapens toegerus om te gaan veg. Daar was altesaam 12 000 soldate. Moses het die soldate saam met Eleasar se seun Pinehas gestuur om te gaan veg. Hulle het van die spesiale voorwerpe saamgevat wat hulle in die tabernakel gebruik het om God te dien en ook die trompette waarmee hulle seine aan die soldate kon gee. Hulle het die Midianiete aangeval presies soos die Here beveel het, en al die mans doodgemaak. Onder die mense wat doodgemaak is, was die vyf Midianitiese konings: Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Hulle het ook vir Bileam seun van Beor doodgemaak. Die Israeliete het al die Midianitiese vroue gevang, hulle beeste en kleinvee gevat en hulle besittings gestroop. Hulle het ook al hulle stede en dorpe verbrand. Nadat hulle al hulle oorlogsbuit en al die mense en diere bymekaargemaak het, het hulle dit alles na hulle kamp toe gevat op die vlaktes van Moab. Dit is regoor Jerigo langs die Jordaanrivier. Daar het hulle alles vir Moses en die priester Eleasar in die teenwoordigheid van die volk gegee. Moses en Eleasar het saam met die ander leiers van die volk die soldate buite die kamp gaan inwag. Moses was baie kwaad vir die offisiere en hulle onderoffisiere toe hulle van die geveg af terugkom. “Hoekom het julle die vroue laat leef?” het hy vir hulle gevra. “Dit is juis hulle wat Bileam se raad gevolg het en die Israeliete verlei het om Baäl-Peor te aanbid. As gevolg daarvan het die Here ons met ’n siekte-epidemie getref! Maak nou dadelik al die seuntjies dood, so ook al die vroue wat al by ’n man geslaap het. Net die jongmeisies wat nog maagde is, mag julle laat lewe en hulle vir julle as vroue vat. Elkeen van julle wat iemand in die oorlog doodgemaak het of aan ’n lyk geraak het, moet vir sewe dae uit die kamp uit bly. Julle moet julleself en julle gevangenes op die derde en die sewende dag reinig deur die voorgeskrewe offers te bring. Julle moet elke stuk klere en elke ander ding wat van leer of bokhaar of hout gemaak is, ook reinig.” [21-23] Eleasar het toe vir die soldate gesê: “Die Here het vir Moses beveel: Alle oorlogsbuit wat hitte kan verduur, soos goud, silwer, brons, yster, tin en lood, moet eers met vuur skoongebrand word en daarna met reinigingswater skoongewas word. Daarna is dit skoon en aanvaarbaar voor die Here. Alles wat nie met vuur skoongemaak kan word nie, moet net met reinigingswater gewas word. *** *** Julle moet almal op die sewende dag julle klere was. Daarna sal julle weer rein wees en in die kamp kan inkom.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy en Eleasar en die leiers van elke stam moet ’n opname maak van al die oorlogsbuit, dit sluit mense en diere in. Verdeel dit dan in twee en gee een helfte vir die soldate en die ander helfte vir die res van die volk wat hier agtergebly het. Uit die soldate se helfte moet jy vir die Here ook sy deel gee. Een uit elke 500 mense, beeste, donkies, skape en bokke behoort aan die Here. Gee dan hierdie bydrae vir Eleasar as ’n geskenk aan die Here. Jy moet ook een uit elke 50 van alles wat aan die volk gegee word, mense, beeste, donkies, skape en bokke, by hulle vat. Hierdie gedeelte moet jy vir die Leviete gee wat in beheer is van die tabernakel waar Ek aanbid word.” Moses en Eleasar het hierdie opdrag van die Here uitgevoer. Die buit wat oorgebly het uit wat die soldate gebuit het, was 675 000 stuks kleinvee, 72 000 beeste, 61 000 donkies, en 32 000 maagde. Die soldate wat gaan veg het, se deel was 337 500 stuks kleinvee, waarvan 675 ’n geskenk aan die Here was, 36 000 beeste, waarvan 72 ’n geskenk aan die Here was, 30 500 donkies waarvan 61 ’n geskenk aan die Here was, en 16  000 mense van wie 32 ’n geskenk aan die Here was. Moses het vir die priester Eleasar sy deel gegee soos die Here gesê het. Die ander Israeliete se deel was 337 500 stuks kleinvee, 36 000 beeste, 30  500 donkies en 16 000 mense. Van die Israeliete se helfte het Moses een uit elke 50 persone en diere gevat volgens die Here se opdrag, en dit vir die Leviete gegee wat in beheer was van die tabernakel. Die offisiere en onderoffisiere van die soldate wat gaan veg het, het toe na Moses toe gekom en vir hom gesê: “Ons het al die manskappe onder ons bevel getel. Nie een is in die oorlog dood of vermis nie. Daarom bring ons nou ook ons bydrae aan die Here uit die kleiner artikels wat elke man vir homself gevat het: goue kettinkies, armbande, ringe, oorringe en halssnoere. Dit is ons manier om vir die Here dankie te sê dat Hy ons lewe gespaar het en om ekskuus te sê vir al ons sondes.” [51-52] Moses en Eleasar het al hierdie juwele by hulle gekry. Toe hulle dit weeg, het hierdie geskenk aan die Here ongeveer 200 kilogram geweeg. *** Dit was sonder die deel wat die soldate vir hulleself gehou het. Moses en Eleasar het die geskenke van die offisiere na die tent toe gevat waar die Here aanbid word en dit daar bewaar om die Here te herinner dat die Israeliete aan Hom behoort. Die stamme van Ruben en Gad het gesien dat die gebiede by Jaser en Gilead baie goeie weiding gehad het. Omdat hulle groot troppe vee gehad het, het hulle vir Moses en Eleasar en die ander leiers van die volk gaan sê: [3-5]  “Hierdie dele van Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon wat die Here aan ons oorgegee het, is ’n goeie gebied vir vee. Omdat ons baie vee het, vra ons u om asseblief eerder hierdie gebied vir ons te gee as ’n stuk grond aan die oorkant van die Jordaanrivier.” *** *** Moses antwoord toe: “Verstaan ek reg: Julle wil aan hierdie kant van die rivier bly terwyl die res van julle volksgenote aan die oorkant moet gaan veg vir wat aan hulle behoort? Hoekom wil julle nou die res van die volk se moed breek om in die land in te trek wat die Here vir hulle gee? Dit is presies wat julle voorouers ook gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan deurkyk. Hulle het tot in die Eskolvallei gegaan en die hele gebied deurgekyk, maar toe hulle terugkom, het hulle die volk so bang gepraat dat hulle nie meer in die land wou intrek wat die Here vir hulle gegee het nie. Die Here het daardie dag so kwaad geword dat Hy ’n plegtige belofte gemaak het: ‘Al het Ek vir Abraham en Isak en Jakob belowe dat hulle nageslag in die land sou bly, sal Ek sorg dat nie een van die mans van twintig en ouer wat Ek uit Egipte verlos het, in hierdie land sal intrek nie. Hulle verdien dit nie, want hulle het My nie voluit vertrou nie. Die enigste uitsonderings is Jefunne die Kenasiet se seun Kaleb en Nun se seun Josua, want hulle het My heeltemal vertrou.’ In sy woede het die Here Israel 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek totdat die hele geslag wat Hom so kwaad gemaak het, dood was. En hier kom julle bende sondaars en julle maak net soos hulle. Wil julle nou weer die Here kwaad maak? As julle twee stamme weier om die Here te volg, gaan Hy die Israeliete doodgewoon in die woestyn aan hulle eie lot oorlaat, en wat dink julle bly dan van hulle oor?” Die stamme van Ruben en Gad kom toe met ’n voorstel na Moses toe: “Laat ons toe om vir ons vee krale te bou en stede met sterk mure waarin ons vroue en kinders veilig sal wees. Daarna sal ons ons wapens bymekaarmaak en in die voorste linies van die Israeliete gaan veg. Ons sal saam met hulle oor die rivier trek en saam met hulle veg totdat hulle almal in hulle eie land ’n plek het om te bly. Intussen kan ons vroue en kinders veilig hier agterbly in die stede wat ons vir hulle gebou het, want die mure om die stede is sterk en hoog genoeg om hulle te beskerm. Ons sal nie terugkom hiernatoe voordat al die ander Israeliete hulle eie grond gekry het nie. Ons is nie negatief nie, maar ons wil nie grond aan die oorkant van die Jordaanrivier hê nie. Die grond hier aan die oostekant van die rivier is ons grond.” Moses antwoord toe: “Goed so! Bring julle soldate om oor die Jordaanrivier voor die Here se ark uit te trek. Hou aan met veg totdat die Here al sy vyande verslaan en die land ingeneem het. Dan eers kan julle terugkom hiernatoe. Want dan het julle julle plig teenoor die Here en die ander Israeliete nagekom. Dan sal die Here hierdie gebied aan die oostekant van die Jordaanrivier vir julle gee. Maar as julle nie julle belofte nakom nie, oortree julle teen die Here. En moenie ’n fout maak nie, die Here sal julle beslis daarvoor straf. So, bou gerus stede vir julle mense en krale vir julle vee. Maar daarna moet julle julle belofte nakom.” Die mense van Gad en Ruben sê toe vir Moses: “Ons sal doen net wat jy vra. Ons sal ons vroue en kinders en ons kleinvee en ons beeste net hier in Gilead in die dorpe laat bly, maar elkeen van ons wat kan veg, sal saam met julle oor die Jordaanrivier trek en vir die Here gaan veg.” Moses het toe vir die ander leiers van die volk en vir Eleasar en Josua die volgende oor hierdie twee stamme gesê: “As al Gad en Ruben se soldate saam met julle oor die Jordaanrivier trek en saam met julle daar gaan veg, moet julle vir hulle hierdie gebied in Gilead gee nadat julle die land ingeneem het. Maar as hulle soldate nie saam met julle gaan veg nie, moet hulle hulle deel van die land kry net soos julle. Dan moet hulle dit aanvaar en daar gaan bly.” Die mense van Gad en Ruben het toe gesê: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het. Ons sal saam met julle oor die Jordaanrivier trek en in die Here se Naam gaan veg sodat ons ons grond hier aan die oostekant van die Jordaanrivier kan behou.” Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete asook die koninkryk van koning Og van Basan vir die stamme van Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse gegee as hulle erfdeel. Die mense van Gad het die volgende stede vir hulle herbou: Dibon, Atarot, Aroër, Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, Bet-Nimra en Bet-Haram. Rondom al hierdie stede het hulle vir hulle hoë mure vir beskerming gebou en ook krale vir hulle kleinvee opgerig. Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim, Nebo, Sibma en Baäl-Meon. Hierdie stad se naam het hulle verander. Hulle het al die ander stede wat hulle herbou het, se name behou. Die afstammelinge van Makir het Gilead aangeval en dit ingeneem. Hulle het die Amoriete uitgedryf wat daar gebly het. Moses het Gilead toe vir die mense van Makir, wat deel was van die Manassestam, gegee. Hulle het toe daar gaan bly. Jaïr, ook ’n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe in ’n ander deel aangeval en verower en dit herdoop na die “dorpe van Jaïr”. Intussen het ’n man met die naam Nobag die stad Kenat en sy omringende dorpe aangeval en ingeneem. Hy het die gebied Nobag genoem. Hier volg ’n opsomming van die Israeliete se kampplekke nadat hulle onder Moses en Aäron se bevel uit Egipte getrek het. Soos die Here vir Moses gesê het, moes hulle elke plek waar hulle gekamp het, se naam neerskryf. Die trek het so verloop: [3-4] Die Israeliete het die oggend na die heel eerste paasfees vroeg in die lente van die stad Rameses in Egipte af weggetrek. Die Egiptenaars was nog besig om hulle kinders te begrawe wat in die groot wonderwerk wat die Here daar gedoen het, dood is. Hulle kon niks anders doen nie as om maar net te kyk hoe die Israeliete wegtrek. Die Here het hulle laat wegtrek, want met die laaste wonder het Hy finaal al die gode van Egipte op hulle plek gesit. *** Van Rameses af is hulle Sukkot toe waar hulle kamp opgeslaan het. Hulle het Sukkot verlaat en tot by Etam op die rand van die woestyn getrek en daar kamp opgeslaan. Van Etam af is hulle terug na Pi-Hagirot toe, regoor Baäl-Sefon, waar hulle by Migdol kamp opgeslaan het. Hulle het die omgewing van Pi-Hagirot verlaat en deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Na drie dae se trek deur die Etamwoestyn het hulle by Mara aangekom en daar oorgebly. Van Mara af is hulle Elim toe. Daar was twaalf fonteine en 70 palmbome, en hulle het daar gekamp. Van Elim af is hulle na die Rietsee toe waar hulle weer kamp opgeslaan het. Hulle het die Rietsee verlaat en later in die Sinwoestyn kamp opgeslaan. Hiervandaan is hulle na Dofka toe. Daarna is hulle na Alus toe en van daar af na Refidim toe. Dit is waar daar nie drinkwater vir die volk was nie. Hulle het toe van Refidim af na die Sinaiwoestyn getrek. Hierna het die Israeliete op die volgende plekke oorgebly: Kibrot-Taäwa, Gaserot, Ritma, Rimmon-Peres, Libna, Rissa, Kehelata, Har-Sefer, Garada, Makhelot, Tagat, Terag, Mitka, Gasmona, Moserot, Bene-Jaäkan, Gor-Gidgad, Jotbata, Abrona, Esjon-Geber, Kades in die Sinwoestyn, en die berg Hor aan die grens van Edom. In opdrag van die Here het die priester Aäron teen Hor uitgeklim en daar op die eerste van die vyfde maand gesterf, 40 jaar nadat die Israeliete uit Egipte weg is. Aäron was toe 123 jaar oud. Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev, die suidelike woestyngebied van Kanaän, gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is. Die Israeliete het Hor verlaat en by Salmona kamp opgeslaan. Van daar af het hulle by die volgende plekke kamp opgeslaan: Punon, Obot, Ije-Abarim aan die grens van Moab, Dibon-Gad, Almon-Diblatajim, die Abarimberge regoor Nebo en die Moabsvlakte langs die Jordaanrivier regoor Jerigo. Daar langs die Jordaanrivier, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan. Daar in die vlakte van Moab aan die oorkant van die Jordaanrivier regoor Jerigo het die Here vir Moses die volgende opdragte gegee: “Sê vir die Israeliete: As julle oor die Jordaanrivier trek in die land Kanaän in, moet julle al die inwoners van die land wegjaag. Julle moet al hulle uitgesnyde en gegote afgode vernietig en hulle offerplekke verwoes. Neem die land in en gaan bly daar, want Ek gee dit vir julle. Julle moet die land verdeel deur die stamme volgens hulle getalle te laat lootjies trek. Die groter stamme moet meer grond kry as die kleiner stamme. Hierdie verdeling is finaal. Die verskillende stamme moet elkeen op hulle eie grond bly. Wees gewaarsku, as julle nie al die oorspronklike inwoners van hierdie gebied uit die land uit verdryf nie, gaan hulle vir julle groot probleme veroorsaak. Hulle sal net so irriterend wees soos ’n splinter in ’n mens se oog of ’n doring op ’n ongemaklike plek. Hulle sal julle in julle eie land aanval en teen julle oorlog maak. En dan straf Ek julle soos Ek van plan was om hulle te straf!” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete Ek gee vir hulle die hele land Kanaän om in te bly, dit behoort nou aan hulle. Die grense van die land lyk so: “Julle suidgrens strek van die Sinwoestyn af tot teen Edom. Aan die oostekant begin hierdie grens by die suidelike punt van die Dooie See, daarvandaan draai dit suid van Skerpioenpas af weg in die rigting van Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea af tot by Gasar-Addar en verby tot by Asmon, waar dit wegdraai en al met die kloof wat die grens met Egipte vorm, langs strek tot by die Middellandse See. “Die Middellandse See vorm die wesgrens van julle land. “Aan die noordekant loop die grens van die Middellandse See af tot by die berg Hor, en van daar af tot by die kloof deur Hamat. Daarvandaan loop die grens na Sedad toe en verder tot by Sifron en Gasar-Enan. Dit is die noordgrens. “Die oostelike grens loop van Gasar-Enan af tot by Sefam. Die grens loop dan van Sefam af tot by Ribla, oos van Ajin, en daarvandaan deur die berge teen die oostelike oewer van die Meer van Gennesaret en dan al met die Jordaanrivier langs tot by die Dooie See. Dit is hoe die grense van julle land lyk.” Moses het vir die Israeliete gesê: “Hierdie is die gebied wat die Here gee aan die nege en ’n half stamme wat nog nie grond gekry het nie. Julle moet lootjies trek om te sien wie watter deel kry as hulle eiendom. [14-15] Die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam het mos reeds hulle grond aan die oostekant van die Jordaanrivier regoor Jerigo gekry.” *** Verder het die Here vir Moses gesê: [17-18] Die mense wat verantwoordelik is daarvoor om toe te sien dat die land regverdig verdeel word, is die priester Eleasar en Josua saam met ’n leier uit elke stam. *** [19-28] Die name van hierdie leiers is: Stam Leier Juda — Kaleb, die seun van Jefunne Simeon — Samuel, die seun van Ammihud Benjamin — Elidad, die seun van Kislon Dan — Bukki, die seun van Jogli Manasse — Ganniël, die seun van Efod Efraim — Kemuel, die seun van Siftan Sebulon — Elisafan, die seun van Parnak Issaskar — Paltiël, die seun van Assan Aser — Agihud, die seun van Selomi Naftali — Pedael, die seun van Ammihud *** *** *** *** *** *** *** *** *** Dit is die leiers aan wie die Here die opdrag gegee het om die grond in Kanaän onder die Israeliete te help verdeel. Terwyl die Israeliete nog in die vlakte van Moab, regoor Jerigo aan die oostekant van die Jordaanrivier, gekamp het, het die Here vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê dat wanneer hulle hulle grond gekry het, hulle vir die Leviete stede moet gee om in te bly met goeie weiveld. Hierdie stede met die weivelde moet hulle eiendom word, sodat hulle daar kan bly en hulle beeste en skape daar kan laat wei. [4-5] Van die stadsmuur af moet julle ’n strook van 450 meter wyd afmeet vir hierdie weiveld. Doen dit reg rondom die stad sodat die stuk weiveld om die stad 900 meter van oos na wes loop en weer 900 meter van noord na suid, met die stad in die middel. *** “Verder moet ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, stede wees waarheen ’n persoon sou kon vlug wat iemand anders per ongeluk doodgemaak het. Bo en behalwe hierdie ses stede moet julle vir hulle nog 42 ander stede ook gee. Hulle moet altesaam 48 stede kry met weiveld rondom elke stad. Die aantal stede wat elke stam vir die Leviete moet gee, hang saam met die grootte van die stam en die hoeveelheid grond wat hulle gekry het. As dit een van die groter stamme is, moet hulle meer stede afstaan. En as dit een van die kleiner stamme is, moet hulle minder stede afstaan.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet julle vir julle ’n aantal stede uitsoek wat bekend sal staan as toevlugstede. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon uit weerwraak daar kom vang en doodmaak nie. Daar sal hy eers die kans kry om sy saak aan die leiers van die volk te stel. Julle moet ses sulke toevlugstede aanwys. Drie in die gebied oos van die Jordaanrivier en drie in Kanaän, wes van die Jordaanrivier. Hierdie stede moet veilige stede wees vir enigeen wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het, of die persoon nou ’n Israeliet is of een van die ander mense wat saam met julle bly. Dit geld vir almal. “Maar as iemand ’n ander persoon met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. Of as iemand ’n ander persoon met ’n groot klip slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. En as iemand ’n ander persoon met ’n gevaarlike stuk hout bydam en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. In al hierdie gevalle het die naaste familielid van die vermoorde persoon die verantwoordelikheid om die moordenaar aan die pen te laat ry vir die moord. Ook in die geval waar iemand ’n ander mens haat en hy die persoon hard omstamp of hom doelbewus met iets gooi, of hom met die vuis slaan sodat hy doodgaan, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. ’n Familielid van die vermoorde het die verantwoordelikheid om die moordenaar te soek en aan die pen te laat ry vir die moord.” “Sê nou dit gebeur dat iemand per ongeluk en sonder dat hy ooit kwaad was, iemand hard omstamp of per ongeluk raak gooi, of sonder dat hy dit gesien het, hom met ’n klip raak gooi sonder enige bybedoelings en die persoon gaan as gevolg hiervan dood, dan moet die leiers die saak ondersoek. Hulle moet besluit wat hulle gaan doen met die saak tussen die beskuldigde en die familielid van die persoon wat dood is. Die volgende riglyne moet gevolg word: As die vergadering besluit dat die persoon per ongeluk doodgemaak is en dat dit nie ’n beplande moord was nie, moet hulle hulle uitspraak in die guns van die beskuldigde gee. Om hom te beskerm teen die wraak van die familielid van die dooie, moet hulle hom laat teruggaan na die toevlugstad waarheen hy gevlug het. Hy moet in dié stad bly tot die dood van die hoëpriester. Maar as hy die toevlugstad voor die tyd verlaat, en die familielid van die dooie loop hom raak en maak hom dood, is dit nie moord nie. Want iemand wat na ’n toevlugstad toe gevlug het, moet daar bly tot die dood van die hoëpriester. Eers daarna is dit veilig om uit te kom en terug te gaan huis toe. Hierdie reëls geld vir julle en julle nageslag, maak nie saak waar julle bly nie. “Iemand wat van moord aangekla word, mag slegs tereggestel word indien daar meer as een getuie is wat dit gesien het. Die getuienis van een persoon is nie aanvaarbaar nie. ’n Moordenaar wat skuldig bevind is, moet tereggestel word. Hy kan nie ’n loskoopboete betaal nie. Iemand wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het en na ’n toevlugstad toe gestuur is, kan ook nie geld betaal om homself los te koop nie. Die persoon moet in die toevlugstad bly tot die dood van die hoëpriester. Julle mag nie die land waarin julle nou gaan bly, met moord besoedel nie. Daar is net een manier waarop die skuld hiervoor betaal kan word om die land weer skoon te kry en dit is om die persoon wat die moord gepleeg het, tereg te stel. Julle moenie die land waarin julle bly, besoedel nie, want Ek self bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete woon.” Daar het ’n groep familiehoofde van die mense van Gilead, die seun van Magir uit die stam van Manasse, na Moses en die ander leiers van Israel toe gekom met ’n versoek. Hulle het die saak so gestel: “Toe die Here jou beveel het om die land onder die mense te verdeel deur lootjies te trek, het Hy mos ook vir jou gesê om vir Selofgad se dogters sy deel te gee. Maar nou is daar ’n probleem. Sê nou hulle trou met mans uit ander stamme van Israel. Dan beteken dit dat hierdie mans daardie grond kry. So word die ander stam se grond meer en ons s’n minder. En as die 50ste feesjaar aanbreek, word hierdie grond die permanente eiendom van daardie stam. So word ons wettige grond van ons af weggevat.” Daarom het die Here toe vir Moses gesê: “Wat die mense van die stam van Josef sê, is waar. Daarom is hierdie my beslissing: die dogters van Selofgad is vry om te trou met wie hulle wil, solank die persoon in hulle eie stam is. Die grond van een stam mag nie aan ’n ander stam oorgedra word nie. Dit bly die stam s’n vir altyd. Enige dogter wat grond van haar pa erf, mag slegs met iemand uit haar eie stam trou. Op dié manier sal die stam se grond in die stam bly sonder dat een stam iets van ’n ander stam kan vat. Elke stam moet die grond wat hy by die Here gekry het, goed oppas.” Selofgad se dogters het gedoen wat die Here gesê het. [11-12] Al vyf van hulle, Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, het met mans uit hulle pa se stam, die stam van Manasse wat Josef se seun is, getrou sodat hulle grond in hulle pa se stam gebly het. *** Dit is die reëls wat die Here vir Moses gegee het om aan die Israeliete oor te dra daar op die vlakte van Moab langs die Jordaanrivier regoor Jerigo. In hierdie boek vind ’n mens alles wat Moses net voor hulle intog in die Beloofde Land vir Israel gesê het. Moses het dit in die woestyn aan die oostekant van die Jordaan gesê. Dit was toe hulle by Suf tussen Paran en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab gekamp het. Dit het hulle elf dae gevat om van die berg Horeb in die rigting van die Seïrberg tot by Kades-Barnea te trek. In die 40ste jaar na die uittog uit Egipte, op die eerste Februarie van daardie jaar, het Moses Israel alles vertel wat die Here vir hom gesê het. Dit was in die tyd nadat Moses die twee Oos-Jordaanse konings verslaan het. Hulle was Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan wat in Astarot by Edreï gewoon het. In die land Moab oos van die Jordaan het Moses toe die wil van die Here vir Israel verduidelik. “Toe ons nog by die berg Horeb was,” so het Moses sy lang rede begin, “het die Here gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Trek nou die land binne wat Ek aan julle beloof het. Slaan julle tente op en gaan na die bergland waar die Amoriete aan die westekant van die Jordaan bly. Verslaan die volke in die woestyndele, op die berge, in die kusvlakte en in die Suidland tot aan die kus van die Middellandse See. Trek die land van die Kanaäniete binne en oorwin die hele gebied van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat. Hierdie hele land gee Ek vir julle. Gaan vat dit vir julle. Dit is die land wat Ek nog aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag beloof het.’” Moses het vir die volk gesê: “Julle sal nog onthou hoe ek by Horeb vir julle gesê het dat ek julle nie alleen kan help of lei nie. Die Here julle God het julle ’n groot volk gemaak. Ja, julle is al so baie soos die sterre aan die hemel. Mag die Here julle nog duisendvoudig vermeerder soos Hy julle voorouers beloof het. En mag julle almal ryk en gelukkig wees. Julle probleme het egter vir my te swaar geword. Ek alleen kan tog nie met al julle daaglikse probleme en hofsake help nie. Toe het ek vir julle gesê om verstandige en ervare mans uit elke stam van die volk aan te stel. Hulle moes julle dan lei en help. En julle het ingestem. Ek het toe mos hierdie verstandige en ervare mense as stamleiers aangestel. Hulle moes julle met die administrasie en die organisasie van die stamme help. Sommige het ek oor 1 000 mense, ander oor 100, 50 of tien mense aangestel. Vir elke stam was daar ook ’n sekretaris. “Destyds het ek vir die regters gesê om altyd fyn na elkeen se saak te luister. Al was dit maar net ’n saak tussen ’n man en sy broer of die vreemdeling wat by hom woon, moes die regters regverdig oordeel. Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring. “In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.” “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom. Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee. ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’ “Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry. Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken. Hulle is die bergland in en het so ver as die vallei van Eskol gekom. Hulle het van die vrugte gepluk en dit teruggebring. Hulle het ook kom vertel dat die land wat die Here vir ons gee, baie mooi is. Maar julle wou nie optrek nie. Toe het julle teen die Here in opstand gekom. Julle het in julle tente onder mekaar gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons net uit Egipte gelei sodat die Amoriete ons kan vernietig. En waar moet ons nogal in die nuwe land gaan woon? Ons is bang, want die verkenners het gesê dat die mense van die land baie meer en baie groter is as ons. En dat hulle in groot stede met baie hoë mure woon. Verder het hulle ook nog reuse daar gesien.’ “Ek het toe vir julle gesê om nie bang te wees nie. En dat die Here voor julle uit sal gaan en vir julle sal veg soos Hy destyds in Egipte gedoen het. Julle het self gesien hoe Hy julle in die woestyn gehelp het, net soos ’n man sy seun help. En hoe Hy julle tot by hierdie plek gelei het. Nogtans wou julle nie die Here julle God vertrou nie. Elke dag het Hy vir julle ’n plek gesoek om te kamp. Snags het Hy julle die pad met ’n groot vuur gewys en bedags met ’n wolk. Nogtans wou julle Hom nie vertrou nie.” “Die Here het alles gehoor wat julle gesê het en Hy was kwaad, maar ook teleurgesteld. Dit is hoekom die Here vir julle gesê het: ‘Nie een van julle ongelowige spul sal die goeie land sien wat Ek vir julle wou gee nie. Slegs Kaleb die seun van Jefunne sal die land sien wat Ek vir julle gee. Hy was getrou aan My. Daarom gee Ek ’n deel van die land vir hom en sy kinders.’ “Oor al julle ongehoorsaamheid het die Here ook vir my kwaad geword en gesê: ‘Moses, selfs jy sal nie die land binnegaan nie. Jou helper, Josua die seun van Nun, sal dit wel sien. Praat hom moed in, want hy is die een wat Israel die nuwe land sal inlei.’ Die Here het verder vir almal gesê: ‘Julle klein kindertjies wat nog nie mooi weet wat reg en verkeerd is nie, sal die land binnetrek. Julle het gesê die vyand sal nog julle kinders in die woestyn doodmaak, maar Ek sal die Beloofde Land vir húlle gee. Die res van julle kan net sowel nou omdraai en deur die woestyn na die Skelfsee teruggaan. Julle sal die land wat Ek julle beloof het, nooit sien nie.’ “Toe julle dit gehoor het, het julle gesê: ‘Moses, ons het drooggemaak. Soos die Here vir ons gesê het, sal ons sommer dadelik die land binneval.’ En kan julle nog onthou wat toe gebeur het? Elkeen het sy wapens geneem en wou die land sommerso binneval. “Toe het die Here weer gesê: ‘Moses, keer hulle. Ek gaan beslis nie saam met hulle nie. Daarom sal die vyand hulle vernietig.’ Ek het julle alles vertel wat die Here gesê het, maar weer het julle nie geluister nie. Julle het julle weer nie aan Hom gesteur nie en die land binnegeval. Toe het die Amoriete wat in die berge woon, op julle toegesak en julle soos bye agtervolg. Hulle het julle tot so ver as Horma en Edom verdryf. Julle het teruggekom en voor die Here gehuil, maar Hy het gemaak of Hy julle nie hoor nie. Daarna het ons ’n baie lang tyd in Kades-Barnea gebly.” “Soos die Here gesê het, is ons toe deur die woestyn na die Skelfsee toe. Vir ’n lang tyd het ons langs die berge van Edom getrek. Toe het die Here vir my gesê dat ons lank genoeg langs die bergwêreld getrek het en dat ons weer noordwaarts moes gaan. Die Here het ook verder gesê: ‘Binnekort trek julle deur Edom waar Esau se nageslag woon. Hulle is verlangse familie van julle, maar hulle sal bang wees vir julle. Moenie met hulle sukkel of ’n oorlog begin nie. Edom behoort aan Esau se nageslag. Ek het dit vir hulle gegee en julle sal niks daarvan kry nie. Vir kos sal julle moet betaal en drinkwater sal julle moet koop.’ Omdat die Here julle God by julle was, het dit altyd met julle goed gegaan. Toe julle deur hierdie groot woestyn getrek het, het Hy dag vir dag vir julle gesorg. Veertig jaar lank sorg Hy al vir julle en dit is waarom julle niks kortkom nie. “Ons is weg uit Edom waar ons familie langs die Seïrberge woon en het na die dorpe Elat en Esion-Geber afgedraai. So het ons in die rigting van die Moabvlaktes getrek.” “Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Moenie Moab aanval of ’n geveg begin nie. Van hierdie land sal julle ook niks kry nie, want Ek het die stad Ar aan die nageslag van Lot gegee.’ (Die Emiete het voorheen in Ar gewoon. Hulle was net soos die Enakiete groot en lank. Soms is die Enakiete ook Refaïete genoem, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem. Die Horiete het vroeër in Edom gewoon, maar Esau se kinders het hulle daaruit verjaag en hulle heeltemal uitgewis. Die Edomiete, die nageslag van Esau, het toe in die land gaan woon. So sou Israel ook later met die Kanaäniete maak.) Toe is ons deur die Seredrivier soos die Here vir ons gesê het om te doen. Dit het 38 jaar geduur vandat ons by Kades-Barnea weg is totdat ons by die Seredrivier gekom het. In hierdie jare is al die mense dood wat destyds nie die land wou inneem nie. Die Here het hulle ongehoorsaamheid onthou en hulle oor die jare laat sterf. “Toe hulle almal dood is, het die Here vir my gesê: ‘As julle vandag deur die gebied van die Moabiete trek, gaan julle baie naby aan die Ammoniete verby. Moenie hulle aanval of ’n geveg begin nie. Hierdie land het Ek vir Lot en sy kinders gegee. Daarom sal julle niks daarvan kry nie.’ (Ook hierdie gebied word die land van die Refaïete genoem. Voorheen het die Refaïete daarin gebly. Die Ammoniete het hulle die Samsummiete genoem. Hulle was ook, net soos die Enakiete, groot en lank. Toe het die Here die Refaïete deur die Ammoniete vernietig. En die Ammoniete het die land gevat en daarin gaan bly. Dit is ook wat die Here vir die nageslag van Esau in Seïr gedoen het: Hy het die Horiete verdryf sodat die Edomiete vandag nog daarin kan woon. Dit het ook met die Awwiete in die dorpe rondom Gasa gebeur. Die mense van Kaftor het die Awwiete vernietig en toe in hulle gebied gaan woon.) Die Here het verder vir ons gesê: ‘Staan op en trek deur die Arnonrivier. Ek sal die Amoriet, Sihon die koning van Gesbon en sy land in julle hand gee. Veg teen Sihon en beset sy land. So sal julle met die verowering van die Beloofde Land begin. Van vandag af maak Ek al die volke bang vir julle. As hulle van julle hoor, sal hulle benoud raak. As hulle julle sien, sal hulle begin bewe.’” “Toe het ek mense uit ons kampplek in die Kedemotwoestyn met ’n boodskap na Sihon gestuur: ‘Laat my deur jou land trek. Ek sal reguit trek sonder om af te draai. Vir die kos wat ek eet en die water wat ek drink, sal ek betaal. Laat my deur jou gebied trek tot waar ek die Jordaan na die Beloofde Land moet oorsteek. Esau se nageslag in Seïr en die Moabiete in Ar het my ook toegelaat om deur hulle land te trek.’ Koning Sihon wou ons egter nie laat deurtrek nie, want die Here het sy hart kliphard gemaak. Toe het ons teen koning Sihon geveg en sy land binnegetrek en dit is waar ons vandag nog woon. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Ek het Sihon en sy land aan julle gegee. Julle moet intrek en dit beset.’ “Sihon en sy weermag het na Jahas toe getrek om teen ons te veg. Die Here het ons egter gehelp en ons het Sihon, sy weermag en sy seuns geheel en al vernietig. Ons het al Sihon se stede ingeneem en al die inwoners doodgemaak. Niemand het oorgebly nie. Ons het die vee vir ons gevat en die stede verwoes. Van Aroër by die Arnonrivier en die groot stad daar naby tot by Gilead was daar geen stad wat ons nie met die hulp van die Here ingeneem het nie. Soos die Here ons beveel het, het ons nie die Ammoniete aangeval nie. Ook nie die dele rondom die Jabbokrivier en al die stede in die berge nie.” “Toe het ons in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan en sy weermag het teen ons uitgetrek en ons by Edreï ingewag. Die Here het egter gesê: ‘Moenie vir Og bang wees nie. Julle sal hom en sy volk verslaan en sy land vir julle vat. Maak met hom soos julle met Sihon, die Amoritiese koning van Gesbon, gemaak het.’ Die Here het ons gehelp om Og en sy mense te oorwin. Ons het die volk uitgewis. Niemand het oorgebly nie. Ons het ook al die stede ingeneem. Daar was nie ’n plek wat ons nie oorwin het nie. Altesaam 60 stede en die hele Argobgebied waar Og regeer het, was binne ’n kort tyd ons s’n. Al hierdie stede het hoë mure en versterkte ingange gehad. Dan was daar ook nog baie kleiner plekkies sonder mure om wat ons ingeneem het. Ons het al hierdie dorpe en stede se mense uitgewis. Ons het met hulle gemaak soos ons met Sihon die koning van Gesbon gemaak het. Al die vee en waardevolle artikels in die stede het ons vir ons gevat.” “So het ons die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon oorwin. Daarmee saam het ons ook die twee sterk Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan vernietig. (Die mense van Sidon het die berg Hermon Sirion genoem en die Amoriete het daarna verwys as Senir.) Ons het al die stede van koning Og van Basan oorwin. Dit is nou al daardie stede in die Hoogvlakte, die hele Gilead en die hele Basan tot by Salka en Edreï. (Og die koning van Basan was die laaste van die Refaïete. Hy was ’n groot kêrel en sy bed was van yster gemaak: vier meter lank en twee meter breed. ’n Mens kan dit nou nog in Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, sien.) “Nadat ons hierdie land ingeneem het, het ek dit begin verdeel. Vir Ruben en Gad het ek die hele gebied van Aroër naby die Arnonrivier af tot by sekere gedeeltes van die Gileadberge gegee. Dit het ook ’n aantal stede ingesluit. Vir die helfte van die stam van Manasse het ek die res van Gilead gegee, asook die hele Basan waar Og regeer het. Dit is die hele Argobstreek. Basan is ook soms Refaïeteland genoem. Jaïr die seun van Manasse, het die hele gebied van Argob tot aan die grens van Gesur en Maäkat vir hom geneem. En hy het al die plekke na homself vernoem. Vandag nog staan dit as Jaïrsdorpe bekend. Vir Magir van die stam van Manasse het ek Gilead gegee. Vir Ruben en Gad het ek die hele Gilead tot by die Arnonrivier gegee, asook die gebiede tot by die Jabbokrivier. Dit het tot aan die grens van die Ammoniete gestrek. Aan die westekant het hulle gebied tot aan die Jordaan gestrek; van Gennesaret in die noorde af tot by die Dooie See in die suide en die Pisgaberge in die ooste. “Toe het ek vir die stamme aan die oostekant van die Jordaan gesê: ‘Die Here het julle hierdie wonderlike land aan die Oos-Jordaan gegee, maar gaan help nou eers julle broers om die Wes-Jordaan te oorwin. Stel ’n weermag saam en trek voor hulle deur die Jordaan. Julle vroue en kinders en die vee, waarvan julle baie het, kan maar solank in die Oos-Jordaanse gebied woon. Julle moet hulle help totdat hulle die hele Wes-Jordaan oorwin het en die Here vir hulle ook rus en vrede gegee het. Dan kan julle weer na julle plekke oos van die Jordaan terugkeer.’” “Toe het ek vir Josua gesê: ‘Jy het nou self gesien wat die Here met Og en Sihon gedoen het. So sal Hy met elke volk aan die Wes-Jordaan maak. Moet nooit bang wees vir hulle nie, want die Here sal saam met jou teen hulle veg.’ “In dié tyd het ek vir die Here gesê: ‘Here, oor baie jare het U vir my u grootheid en krag laat sien. En dit was nog maar net die begin van wat U gaan doen. Geen god in die hemel of op die aarde kan sulke dinge doen nie. Nou vra ek U, Here, om my ook die mooi land aan die ander kant van die Jordaan te laat sien. Die pragtige bergland en die hoë berge van die Libanon.’ “Maar die Here wou nie. Hy was kwaad vir my omdat julle so baie verkeerde dinge gedoen het. Hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg. Ons het al baie daaroor gesels en ons gaan nie weer daaroor praat nie. Gaan klim die Pisgaberg tot heel bo. Dan kyk jy noord en suid, oos en wes. Kyk mooi na alles, want jy sal nie die land aan die oorkant van die Jordaan intrek nie. Praat Josua moed in, want hy is die een wat hierdie volk deur die Jordaan na die Beloofde Land sal lei.’ En ons het in die vlakte teenoor die dorp Bet-Peor gebly.” “Israel, luister na al die wette en voorskrifte wat ek julle leer. As julle dit alles doen, sal julle bly leef en die land inneem wat die Here lank terug al aan julle voorvaders beloof het. Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil. “Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig. Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog. Al die wette en voorskrifte wat die Here vir my gegee het, het ek julle geleer. Leef daarvolgens waar julle ook al dalk aan die westekant van die Jordaan woon. As julle die wil van die Here gehoorsaam, sal die ander volke julle bewonder. As hulle al hierdie wette hoor, sal hulle sê: ‘Hierdie groot nasie is ’n baie slim en verstandige volk.’ Geen ander nasie het ’n god wat so naby aan sy volk is soos die Here ons God aan ons is nie. Elke keer as ons bid, help Hy ons. Geen ander nasie, hoe groot en belangrik hulle ook al is, het sulke goeie en regverdige wette soos ons nie. En dit is hierdie wette wat ek vandag vir julle wil leer.” “Sorg dat julle nooit die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie. Julle moet dit lewenslank onthou en daaroor nadink. En julle moet ook vir julle kinders en kleinkinders daarvan vertel. Julle moet hulle van daardie dag by Horeb vertel toe die Here baie naby aan julle gekom het. Dié dag toe die Here vir my gesê het: ‘Laat almal bymekaarkom. Ek wil hulle my wil leer sodat hulle My lewenslank sal liefhê en ook vir hulle kinders van My sal vertel.’ “Vertel hulle hoe julle nader aan die berg se voet geskuifel het en hoe die berg daardie dag só gebrand het dat alles rondom julle pikdonker was van die borrelende rookwolke. En julle moet ook vertel hoe die Here in die vuur met julle gepraat het. Julle het mos net ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie. Hy het julle vertel hoe sy eie volk Hom altyd lief moet hê. Daarom het Hy hierdie tien voorskrifte vir julle op twee klippe geskryf. Die Here het vir my in dié tyd gesê ek moet julle al sy wette leer sodat julle sal weet hoe julle in die nuwe land waarheen julle op pad is, moet leef. Toe die Here met julle by Horeb uit die vuur gepraat het, het julle niks gesien nie. Daarom moet julle nooit ’n beeld van Hom maak nie. Julle mag Hom nie as ’n man of ’n vrou, of as ’n viervoetige dier of ’n voël in die hemel of as ’n kruipende dier of ’n vis afbeeld nie.” “Wanneer julle na die hemel opkyk en julle die son, die maan en die sterre sien, moet julle hulle tog nie begin aanbid of dien nie. Dit is wat die ander volke doen en wat die Here hulle ook toelaat om te doen. Julle is tog anders, want die Here het julle uit die slegte situasie van Egipte uitgelei. Hy het julle sy eie gemaak. Julle moet niemand anders dien nie. Omdat julle alreeds so baie dinge verkeerd gedoen het, het die Here vir my kwaad geword en gesê ek sal nooit die Jordaan oorsteek nie. Ek sal nooit die goeie land wat die Here aan julle beloof het, binnegaan nie. Ek sal duskant die Jordaan sterf, maar julle sal ingaan en in die goeie land gaan woon. Julle moenie nou die Here vergeet en julle verhouding met Hom afskeep nie. Julle moet nooit ’n beeld van die Here probeer maak nie, want Hy het dit uitdruklik verbied. Onthou, die Here is soos ’n vuur wat alles vernietig. Hy duld geen afgode nie. “Selfs julle kinders en kleinkinders moenie later ’n beeld van iets maak en dit aanbid nie. Dit is verkeerd en so word die Here se groot Naam baie skade aangedoen. Vandag is die hemel en die aarde getuie daarvan dat ek julle gewaarsku het. As julle ’n beeld maak, sal julle uit hierdie land verdwyn. Julle en julle kinders sal dan nie vir altyd in die land bly woon waarheen julle nou op pad is nie. Julle sal vir seker uitgewis word. Die Here sal julle tussen die ander volke verstrooi. Net ’n paar van julle sal oorleef. Daar sal hulle julle verplig om ander gode te dien, gode wat mense van hout en klip gemaak het, maar wat nie kan hoor of sien of ruik nie. “Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind. As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister. Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.” “Julle moet ’n bietjie na die geskiedenis kyk, na daardie tyd toe die Here die hemel en die aarde gemaak het. En dan moet julle vra of dit al ooit gebeur het dat ’n volk ’n god in ’n vuur hoor praat het en bly leef het. En of daar al ooit ’n god was wat sy eie volk tussen ’n ander volk gaan uithaal het soos die Here met julle in Egipte gedoen het. En of daar al ooit ’n volk was wat sulke wonders en grootse dade soos julle gesien het. Julle het gesien wat die Here met sy groot krag kan doen. Niks staan in sy pad nie. Hy het al hierdie dinge gedoen sodat julle eens en vir altyd kan glo dat die Here alleen God is. Daar is geen ander God behalwe die Here nie. Hy het uit die hemel met julle gepraat en julle geleer hoe om reg te leef. Hier op aarde het julle Hom uit ’n groot vuur hoor praat. Omdat God vir julle voorouers lief was, het Hy julle gekies en het Hy julle op ’n wonderlike manier uit Egipte laat wegtrek. Verder het Hy volke wat baie groter en sterker as julle was, voor julle uitgedryf sodat julle in ’n mooi en goeie land kan gaan woon. Onthou dan nou dat die Here die enigste God in die hemel en op die aarde is. Daar is geen ander God soos Hy nie. Julle moet vandag besluit om altyd volgens die wette en voorskrifte te leef wat ek julle nou gaan gee. Dan sal dit met julle en julle kinders goed gaan. En julle sal ook vir altyd baie gelukkig in die land bly wat die Here vir julle gaan gee.” Voordat Moses verder met die volk gepraat het, het hy eers drie stede aangewys as veilige stede. Iemand kon daarheen vlug as hy ’n persoon per ongeluk en sonder dat hy daardie persoon haat, doodgemaak het. In daardie stede sou so iemand dan veilig wees. Vir die stam van Ruben is die stad Beser, ’n plek in die woestyn, gekies. Vir Gad is Ramot in Gilead en vir Manasse Golan in Basan aangewys. Moses het toe die wet vir Israel gegee. Dit was al die gebooie en voorskrifte waarvolgens hulle moes leef. Hy het dit baie jare na die uittog uit Egipte gedoen terwyl hulle oos van die Jordaan in die Bet-Peorvlakte gekamp het. Bet-Peor het eers aan die Amoritiese koning, Sihon wat in Gesbon gewoon het, behoort. Moses en die Israeliete het hom egter verslaan. Behalwe Sihon het hulle ook nog Og van Basan vernietig. Hy was die ander Amoritiese koning wat aan die oostekant van die Jordaan gewoon het. Hulle gebied het van Aroër naby die Arnonrivier af tot by die Hermonberge gestrek. Dit het ook die hele gebied oos van die Jordaan tot by die Dooie See en die Pisgaberg ingesluit. Moses het almal bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Luister baie fyn na al die wette wat ek julle vandag gee. Sorg dat julle dit baie goed ken en daarvolgens lewe. Lank gelede het die Here by Horeb met ons ’n ooreenkoms gesluit. Hy het nie met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit nie, maar met ons; met ons wat nog leef en wat vandag hier op Bet-Peor se vlakte staan. Daar by Horeb het Hy met ons persoonlik uit ’n vuur gepraat. En ek het tussen julle en die Here gaan staan omdat julle bang was vir die vuur. Toe het ek julle alles vertel wat die Here gesê het. “Dit is wat Hy gesê het: ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, uitgelei het. ‘Jy mag geen ander gode besit of aanbid nie. ‘Jy mag geen beeld maak van enigiets wat in die hemel is, of op die aarde of in die waters onder die aarde nie. Jy mag nooit voor so ’n beeld buig of dit aanbid nie. Die Here alleen is die ware God en Hy duld nie ander gode nie. Hy straf alle mense en hulle kinders wat Hom haat en ander gode dien. Almal wat Hom egter liefhet en volgens sy wil leef, het die Here op sy beurt ook baie lief. ‘Moenie die Here se Naam sonder rede gebruik nie. Dink mooi voordat jy dit doen, want Ek, die Here jou God, sal nie toelaat dat mense my Naam sommer net so, sonder rede, gebruik nie. ‘Onderhou die sabbat. Leef anders op die sewende dag van die week, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Ses dae moet jy baie hard werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n dag wat eenkant gesit word vir spesiale diens aan die Here. Op hierdie dag moet niemand werk nie: nie jy nie, ook nie jou kinders, jou werkers, jou diere of die vreemdelinge wat by jou inwoon nie. Al jou werkers moet saam met jou op die sabbat rus. Op dié dag moet jy daaraan dink dat jy self ’n slaaf in Egipte was wat elke dag hard gewerk het, maar dat die Here jou op ’n wonderlike manier daar kom wegvat het. Dit is hoekom jy op die sabbat moet rus en al jou werkers saam met jou. ‘Jy moet jou pa en jou ma liefhê en na hulle luister, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Dan sal jy lank lewe. Dan sal dit met jou goed gaan in die land wat die Here jou God aan jou wil gee. ‘Jy moet niemand doodmaak nie. ‘Jy moenie ontrou aan jou huweliksmaat wees en by iemand anders slaap nie. ‘Jy moet niks van iemand steel nie. ‘Jy moenie slegte dinge oor ander mense rondvertel nie. ‘Jy moenie ’n ander man se vrou begeer en haar vir jouself wil hê nie. Ook nie sy huis, sy grond, sy werkers, sy diere of enigiets anders wat syne is nie.’ “Hierdie is die Here se spesiale voorskrifte. Hy het dit vir julle by Horeb gegee toe julle destyds daar bymekaar was. Eers het Hy met ’n harde stem uit die vuur en die donker rookwolke met julle gepraat. Toe het Hy stilgebly en alles op twee plat klippe neergeskryf en dit vir my gegee.” Moses het toe vir die mense gesê: “Nadat julle die stem van die Here by Horeb gehoor het, het al julle leiers na my toe gekom en gesê: ‘Luister, Moses, toe die Here hier by die berg met ons uit die vuur gepraat het, het ons sy grootsheid en almag gevoel. Vandag het ons self gesien dat die Here direk met mense kan praat en dat hulle daarna nog kan bly leef. As ons egter aanmekaar so na die Here se stem luister, kan die groot vuur ons dalk vernietig. En waarom moet ons onnodig sterf? Is daar ander mense op die aarde wat die stem van die lewende God in ’n vuur gehoor het en nog leef? Moses, jy alleen moet van nou af na die stem van die Here gaan luister en ons dan kom vertel wat Hy sê. Ons sal goed na jou luister en doen wat die Here vra.’” Moses het toe die volk geantwoord: “Terwyl julle so met my gepraat het, het die Here elke woord gehoor. En Hy het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hulle jou gevra het en dit is goed so. As hulle My tog maar altyd so sal liefhê en so volgens my wil sal leef dat dit met hulle en hulle kinders goed kan gaan. Gaan sê vir hulle dit is reg so en laat hulle na hulle tente toe teruggaan. Jy, Moses, moet egter nader aan My kom staan sodat Ek my wet en gebooie vir jou kan vertel. Jy moet hulle dan my wil gaan leer sodat hulle vir altyd die land kan behou wat Ek hulle gaan gee.’” Moses het weer al die leiers bymekaargeroep en gesê: “Israel, luister na die wil van die Here en doen alles wat Hy julle vra. Moet nooit ’n enkele tree daarvan afwyk nie. Loop die pad van gehoorsaamheid sodat julle gelukkig kan leef en vir altyd in die land kan woon wat julle in besit gaan neem.” Moses het weer vir die volk gesê: “Hier is die wet en die voorskrifte wat die Here gesê het ek vir julle moet leer. Leef daarvolgens in die land wat julle binnekort gaan binnegaan. Jou hele lewe lank moet jy die Here liefhê en sy wil uitleef. Jy en jou nageslag moet dit doen sodat julle lank kan leef en oud kan word. Israel, luister altyd na die Here se gebooie en gehoorsaam dit. Dan sal jy ’n groot nasie word, soos die Here destyds al vir jou voorvaders beloof het. En jy sal lekker in die mooi en vrugbare land leef. “Israel, onthou altyd dat die Here en net die Here alleen ons God is. Jy moet die Here jou God met alles binne-in jou, ja, met jou hele wese liefhê. Al die woorde wat ek jou vandag leer, moet jy in jou hart bêre en altyd daaraan dink. Jy moet ook jou kinders daarvan vertel en jy moet oral daaroor praat. Of jy nou in jou huis sit, of jy op pad is, of jy ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, jy moet altyd dink oor wat die Here van jou vra. Maak sy voorskrifte aan jou arms vas en bind dit styf vas om jou voorkop. Skryf dit op jou huis se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.” “Wanneer die Here julle in die land bring wat Hy lank gelede al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sal julle in mooi, groot stede woon; stede wat julle nie self gebou het nie. Julle sal in huise vol mooi dinge bly, maar wat julle nie self mooi gemaak het nie. Daar sal ook waterputte wees wat julle nie self uitgekap het nie en wingerde en olyfbome wat julle nie self geplant het nie. In die nuwe land sal daar altyd kos wees. Sorg dus dat jy nooit die Here vergeet nie. Dink altyd aan Hom wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, kom wegvat het. Jy moet die Here altyd liefhê, Hom dien en net in sy Naam beloftes aflê. Moet nooit die gode van die ander nasies rondom jou aanbid nie. Die Here jou God duld geen ander gode nie en as jy hulle aanbid, sal die Here se woede jou soos ’n vuur vernietig. “Julle moenie die Here se geduld beproef soos julle dit by Massa gedoen het nie. Sorg eerder dat julle die Here se wil ken en dit gehoorsaam. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here, dan sal dit met jou goed gaan. Jy sal die land wat die Here alreeds aan jou voorvaders beloof het, binnegaan en gelukkig daar woon. En jy sal ook al jou vyande wegdryf soos die Here jou beloof het.” “Wanneer jou kinders jou eendag vra: ‘Hoekom het die Here ons God julle al hierdie wette gegee en hoekom moet ons dit gehoorsaam?’ moet julle sê: ‘Ons was in Egipte waar ons baie swaargekry het, maar die Here het ons met sy groot krag daar kom wegvat. Met ons eie oë het ons die verskriklike dinge gesien wat die Here met die farao en sy weermag gedoen het. Hy het ons uit Egipte gaan haal en ons tot binne-in die land gebring wat Hy al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het. Toe het die Here ons beveel om Hom lief te hê en te doen wat Hy vra. As ons dit doen, sal dit met ons goed gaan. Dan sal ons bly lewe. En as ons alles nakom wat die Here ons beveel het, sal Hy ons ook liefhê.’” “Wanneer die Here jou God jou in die land bring waarheen jy nou op pad is, sal Hy die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor jou wegjaag. Wanneer die Here hierdie sewe volke in jou hand gegee het, moet jy hard met hulle wees. Moenie ’n ooreenkoms met hulle sluit nie, moenie vir hulle goed wees nie. Jy mag ook nie oor en weer met hulle trou nie. Jou dogters mag nie met een van die mense se seuns trou nie en jou seuns ook nie met een van hulle dogters nie. Hierdie mense sal jou kinders van die Here af wegrokkel en hulle sal ander gode begin dien. Dan sal die Here kwaad word en Hy sal jou ook uitwis. Jy moet daarom al hierdie mense se altare wat hulle vir hulle afgode gebou het, omgooi, hulle klippilare stukkend breek, hulle heilige pale plattrek en al hulle afgodsbeelde in die vuur gooi. Doen dit, want jy behoort aan die Here. Van al die volke op die aarde het die Here jou gekies en jou sy spesiale eiendom gemaak. Jy moet daarom anders as die ander volke leef. Die Here het jou nie liefgekry omdat jy belangrik is of omdat jy sterker as die ander volke is nie. Jy was eintlik die swakste en die geringste van almal. Die Here het jou gekies bloot omdat Hy lief is vir jou. Hy het aan sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gedink. Dit is waarom Hy jou ook uit Egipte, waar jy baie swaargekry het, gaan haal het.” “Onthou altyd dat die Here jóú God is. Hy is getrou. Wie Hom liefhet, sal altyd die Here se verbondsliefde ervaar. Hy sal tot in die verste geslag vir mense bly omgee wat aan Hom getrou is. Wie Hom haat, sal Hy straf. Vir sy haters sal Hy geen genade oorhê nie. Luister dan nou mooi na al die wette en gebooie wat ek julle vandag gee. “As jy na hierdie gebooie luister en dit gehoorsaam, sal die Here jou bly liefhê en aan die ooreenkoms dink wat Hy al met jou voorvaders gesluit het. Hy sal jou liefhê en seën sodat jy baie kinders sal hê. Hy sal ook vir goeie oeste sorg en jou volop koring, mos en olie skenk. Al jou skape en beeste sal aanteel en baie word. Dit sal gebeur in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het. Met geen ander volk sal dit so goed gaan soos met jou nie. Nie jy of jou diere sal ooit onvrugbaar wees nie. En die Here sal jou teen alle siektes bewaar. Al die verskriklike siektes van Egipte wat jy ook baie goed ken, sal die Here van jou af weghou. Hy sal sorg dat jou vyande al daardie siektes kry. Vernietig alle volke wat die Here in jou hande gaan gee. Bewys aan niemand van hulle enige genade nie en dien geen ander gode nie, want dit kan jou lewe verwoes.” “As jy begin twyfel en wonder hoe jy die nasies wat baie groter en sterker as jy is, gaan vernietig, moet dan nie bang word nie. Dink dan terug aan wat die Here jou God met Egipte en die farao se weermag gedoen het. Jy het mos die krag van die Here daar in Egipte gesien. En jy het mos ervaar hoe die Here jou met sy groot krag uit Egipte gelei het. So sal die Here ook met al die nasies maak vir wie jy nou so bang is. Hy sal al die nasies bang maak vir jou. Die Here sal self almal wat vir julle wegkruip, verwoes. Moenie vir die nasies bang wees nie, want die Here is mos by jou. Hy is ’n God wat baie groot en sterk is. Die Here sal die nasies stadig voor jou wegjaag. Jy hoef nie almal met een slag te vernietig nie, want dan sal die wilde diere weer terugkom en net vir jou ’n oorlas word. Moenie bang wees nie, want die Here sal al hierdie nasies in jou hand gee. Hy sal paniek en verwarring onder hulle saai totdat almal uitgewis is. En Hy sal al die nasies se konings in jou hand gee en jy sal hulle name so uitwis dat niemand hulle meer sal onthou nie. Al die beelde van hulle gode moet jy in die vuur gooi. En die goud en silwer waarvan daardie beelde gemaak is, moet jy nie vir jou vat nie. As jy dit doen, kan dit jou verlei om daardie gode te aanbid. Afgode is vir die Here ’n skande. Hy haat hulle; daarom moet jy hulle ook haat. Jy moenie eens iets van ’n afgod in jou huis inbring nie, want dit kan jou lewe verwoes. Vernietig dit.” Moses het verder vir hulle gesê: “Bêre alles wat ek jou vandag vertel diep in jou hart weg. En gaan doen dit. Dan sal jy nog lank leef en baie kinders hê. En jy sal ook die nuwe land kan binnegaan en daar gaan woon. Jy moet altyd terugdink aan die 40 jaar wat verby is. Kyk altyd terug na die pad waarmee die Here jou deur die woestyn gelei het. Hy het jou swaar laat kry sodat jy nederig kon word en kon leer om sy voorskrifte te gehoorsaam. Jy was dikwels honger, maar die Here het vir jou manna gegee. Dit was iets wat jy en jou voorgeslagte nie geken het nie. So wou die Here jou leer dat ’n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar dat die beloftes en die woorde van die Here jou ook versadig maak. In die 40 jaar wat verby is, het jou klere nie eintlik verslyt nie en het jou voete nie eens geswel van al die stap nie. Dink altyd daaraan dat die Here jou in die woestyn soos ’n kind grootgemaak en geleer het. So wou Hy jou leer om Hom lief te hê en volgens sy wil te leef.” “Die Here jou God gaan jou in die goeie land inbring, ’n land van baie water, fonteine en riviere wat oral ontspring; ’n land van koring en gars, van wingerde, vyebome en granate; ’n land van olyfbome en baie heuning; ’n land waar daar nooit ’n skaarste aan brood sal wees nie en waarin jy niks sal kortkom nie; ’n land waar die klippe yster is en ’n mens koper sommer uit die berg kap; ’n land waarin jy baie sal eet en versadig sal word. Wanneer dit gebeur, sal jy die Here jou God loof omdat Hy vir jou goed was en jou in ’n wonderlike land gebring het.” “Sorg dat jy nooit die Here vergeet nie. En moet nooit ophou om volgens sy wil te leef nie. Luister goed na alles wat ek jou vandag vertel. Wanneer jy eendag genoeg het om van te leef en in die mooi huise woon wat jy gebou het, en wanneer jou skape en beeste vermeerder het en jou goud, silwer en besittings baie meer geword het, moet jy nie te selfvoldaan begin word en die Here wat jou uit die swaarkry van Egipte weggevat het, vergeet nie. Onthou, die Here het jou deur ’n groot en verskriklike woestyn gelei waar daar slange, wrede diere en skerpioene was. En in die droë streke was daar geen water nie, maar die Here het vir jou water uit ’n klipharde rots laat kom. Onthou, die Here het vir jou manna in die woestyn gegee. Dit was iets wat jy en jou voorouers nie vantevore geken het nie. In die woestyn het Hy jou swaar laat kry, maar Hy was ook baie goed vir jou. Daarom moet jy nooit dink jy het met jou eie krag ryk en sterk geword nie. Dink altyd aan die Here, want dit is Hy wat jou gehelp het om ryk te word. Hy het dit gedoen omdat Hy tot vandag toe getrou is aan die beloftes wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het. Wanneer jy egter die rug vir die Here draai en ander gode begin dien, sal die Here jou vernietig. Dit sê Hy vandag baie duidelik vir jou. As jy nie na die Here luister nie, is dit klaarpraat met jou. Jy sal soos die nasies omkom wat Hy ter wille van jou uit jou nuwe land gaan jaag.” Moses het ook vir die Israeliete gesê: “Israel, jy moet nou baie mooi luister. Jy staan op die punt om deur die Jordaan te trek en ’n nuwe land binne te gaan. Daar woon volke wat groter en sterker is as jy. Hulle stede is groot en met hoë mure omring. En die mense is groot. Hulle is soos die reuse waarvan jy al gehoor het. Niemand kon hulle ooit oorwin nie. Die Here jou God sal egter soos ’n groot vuur voor jou uittrek. Hy sal al hierdie volke voor jou vernietig. Binne ’n kort tydjie sal jy al die volke oorwin en die land beset. Dit sal gebeur soos die Here vir jou gesê het. Wanneer die Here almal voor jou uitgejaag het, moet jy nie skielik te veel van jouself begin dink nie. Moenie sê jy het die land gekry omdat jy so goed is nie. Nee, die Here het die nasies uitgeroei omdat hulle so sleg was. Dit is nie omdat jy so opreg en volmaak is dat die Here die land vir jou gee nie. Hy verjaag die nasies uit die Beloofde Land omdat hulle so goddeloos is, maar ook omdat die Here sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob waar wil maak. Onthou dan, die Here gee jou nie hierdie goeie, vrugbare land omdat jy kwansuis so goed is nie. Eintlik is jy hardkoppig en vol van jouself.” “Julle moet nooit vergeet hoe kwaad julle die Here in die woestyn gemaak het nie. Vandat julle uit Egipte weg is tot hier in die vlakte van Bet-Peor het julle julle nog net teen die Here verset. By die berg Horeb was dit die ergste. Julle het die Here toe so kwaad gemaak dat Hy julle daar en dan wou verwoes het. Dit was toe ek die berg op was dat julle iets verskrikliks gedoen het. Ek is teen die berg op om die klippe waarop die Here as’t ware self sy wil vir ons geskryf het te gaan haal. Veertig dae en nagte lank was ek bo-op die berg. In daardie tyd het ek niks geëet of gedrink nie. Die Here het my die twee plat klippe gegee waarop Hy as’t ware in sy eie handskrif vir ons sy wil neergeskryf het. Dit was presies dieselfde as wat Hy vroeër vir ons uit die vuur gesê het. “Na 40 dae en nagte het die Here my toe die klippe gegee en gesê: ‘Klim vinnig van die berg af, want die mense wat jy uit Egipte weggelei het, het ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het sommer vroeg al die rug vir My gedraai en vir hulle ’n goue beeld gemaak.’ Die Here het ook vir my gesê: ‘Ek het hierdie volk goed deurgekyk en hulle is sleg! Jy moet My nie probeer keer nie, want Ek gaan hulle nou vernietig. Ek gaan hulle naam so uitwis dat niemand ooit weer van hulle sal praat nie. Dan sal Ek vir jou, Moses, die leier van ’n ander, beter en groter volk maak.’ “Ek is toe vinnig bergaf met die twee plat klippe onder my arms. Oral op die berg was daar net vuur en vlamme. En toe skielik sien ek dit. Voor my was die goue bulkalf wat julle gemaak het. Julle het sommer gou opgehou om God te dien. Ek het die twee klippe toe voor julle oë stukkend gegooi. “Ek het toe weer voor die Here neergebuig, soos die eerste keer toe ek 40 dae en nagte lank met Hom geworstel het. Soos die vorige keer het ek ook niks geëet en gedrink nie. Ek het met Hom geworstel omdat julle die Here diep teleurgestel en Hom kwaad gemaak het. Ek was ook vir die Here se woede bang. In sy verskriklike woede wou Hy julle verwoes, maar gelukkig het Hy weer na my geluister. Aäron het die Here ook kwaad gemaak en Hy wou hom net uitwis. En ek het toe ook vir Aäron gebid. Verder het ek daardie afskuwelike goue kalf gevat en dit in die vuur gesmyt. Toe het ek dit fyngemaal en die stof wat oorgebly het, in die berg se stroompie gegooi. “Later het julle die Here ook by Tabera, Massa en Kibrot-Taäwa teleurgestel. En dan was daar ook nog die voorval by Kades-Barnea met die verkenners. Die Here het gesê julle kan maar die Beloofde Land binnetrek, maar julle het geweier. Julle wou nie die Here vertrou nie; daarom het julle nie na Hom geluister nie. Van die eerste dag af dat ek julle leer ken het tot vandag toe was julle nog net ongehoorsaam aan die Here. “Dit is dan waarom ek 40 dae en nagte lank met die Here geworstel het. Hy wou julle vernietig. Maar ek het vir julle gebid en gesê: ‘Almagtige God, moet tog nie u eie mense uitwis nie. Moet tog nie die mense wat U so kragdadig uit Egipte se swaarkry gered het, verwoes nie. Dink aan Abraham, Isak en Jakob vir wie U lief was en vergeef Israel se hardkoppigheid en sonde. As U hulle uitwis, sal die Egiptenaars net sê dit is omdat U hulle nie in die land kon inbring wat U aan hulle beloof het nie. Of dat U hulle so gehaat het dat U hulle doelbewus woestyn toe gevat het om hulle daar te laat doodgaan. Here, Israel is u eiendom. U het hulle met u groot krag uit Egipte gaan haal. Daarom, Here, moet hulle tog nie nou verwoes nie.’” “Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Kap twee plat klippe, net soos die eerstes wat jy stukkend gebreek het. Maak ook ’n houtark waarin jy die klippe kan sit. Klim dan weer op na My toe bo-op die berg. Ek sal dieselfde woorde op die plat klippe skryf as wat Ek die eerste keer daarop geskryf het. Jy moet dit dan vat en in die ark gaan sit.’ “Ek het die ark van akasiahout gemaak en twee stene soos die eerstes gekap. Bo-op die berg het die Here weer die tien spesiale voorskrifte neergeskryf net soos Hy dit destyds in die vuur by Horeb vir ons gesê het. Toe die Here klaar geskryf het, het Hy die plat klippe gevat en dit vir my gegee. Ek is weer bergaf met die klippe onder my arms. Net soos die Here gesê het, het ek die klippe in die ark gaan neersit. “Israel het op ’n keer in die woestyn by die fonteine van die seuns van Jaäkan gaan woon. Van daar is hulle na Mosera, waar Aäron gesterf het en begrawe is. Sy seun Eleasar het hom as priester opgevolg. Van Mosera het hulle na Gor-Gidgad getrek en van daar weer na Jotbata, ’n plek met volop water. “In dié tyd het die Here die stam van Levi vir ’n spesiale werk afgesonder. Hulle moes die ark met die getuienis van die ooreenkoms met die Here dra en sy priesters wees. Hulle moes ook die mense in die Naam van die Here seën. Tot vandag toe is die Leviete priesters. Dit is ook waarom die Leviete nie ’n stukkie grond in die nuwe land gaan kry nie. Hulle moet net getroue priesters wees; dan sal die Here self vir hulle sorg. “Soos ek gesê het, was ek vir 40 dae en nagte bo-op op die berg, net soos die eerste keer. Ek het daar met die Here geworstel omdat Hy jou, Israel, wou vernietig. Die Here het egter my gebede verhoor en jou nie uitgeroei nie. Hy het toe vir my gesê om julle na die land toe te lei wat Hy lank gelede al aan julle voorvaders beloof het.” “Israel, wat is dit wat die Here van jou vra? Hy vra net dat jy Hom alleen moet aanbid. Hy vra jou om sy wil te gehoorsaam; om Hom altyd lief te hê; om Hom met jou hele wese en met oorgawe te dien; om al die wette wat ek jou vandag gee, jou eie te maak; om die Here se wil ook jou wil te maak. As jy al hierdie dinge doen, sal dit met jou baie goed gaan. Aan die Here behoort die hoogste hemel sowel as die aarde met alles wat daarop is. En tog het die Here net julle voorvaders liefgehad. Van al die volke op aarde het die Here net vir hulle gekies omdat Hy vir hulle lief was. Tot vandag toe is julle steeds die Here se eiendom. Gee julle daarom heeltemal aan die Here oor. Moenie meer soos in die verlede teen die Here in opstand kom nie. “Die Here jou God is sterker as enige ander god en Hy is magtiger as alle mense op die aarde. Hierdie groot, magtige en sterk God kies nie kant in hofsake nie en word nooit omgekoop nie. Hy sorg dat weeskinders en weduwees regverdig behandel word. Hy het mense van ander volke wat tussen julle bly, lief en Hy gee vir hulle kos en klere. Ook jy moet sulke mense liefhê, want jy was self lank ’n vreemdeling in Egipte. “Jy moet net die Here jou God aanbid. Jy moet Hom altyd dien, altyd aan Hom vashou en net in sy Naam beloftes maak. Die Here is jou God en Hom moet jy altyd loof. Vir jou en vir jou alleen het Hy al hierdie groot dinge gedoen. En jy het alles met jou eie oë gesien. Toe jou voorouers destyds Egipte toe is, was hulle maar min. Tog het die Here julle so baie soos die sterre in die hemel laat word.” “Julle moet die Here julle God liefhê en lewenslank al sy wette en voorskrifte gehoorsaam. Onthou al die wonderlike dinge wat die Here julle geleer en vir julle gedoen het. Julle het immers alles self gesien, want dit het met julle gebeur en nie met julle kinders nie. Julle het self sy grootsheid, sy mag en sy krag beleef. Julle het gesien wat Hy alles in Egipte en aan die farao gedoen het; wat met die Egiptiese weermag gebeur het; wat Hy met al die perde en ruiters wat julle agtervolg het, gemaak het; hoe almal in die see beland en verdrink het. Julle weet hoe die Here julle in die woestyn gehelp het en hoe Hy julle tot hier in Bet-Peor gelei het. Julle onthou ook nog wat Hy met die seuns van Eliab, Datan en Abiram, van die Rubenstam gedoen het: hoe die aarde voor die hele Israel oopgeskeur het en hoe Datan en Abiram, saam met hulle vroue en kinders, hulle werkers en besittings daarin geval het. Ja, julle is die mense wat al hierdie magtige dade van die Here gesien en beleef het.” “Israel, leef volgens die wil van die Here sodat julle innerlik sterk kan word en die nuwe land kan binnetrek. Wees getrou sodat julle lank in daardie vrugbare land kan bly wat die Here al aan julle voorvaders beloof het. Dié land is anders as Egipte. Daar het julle saad geplant en dan moes julle hard werk om dit soos ’n groentetuin nat te lei. In die land waarheen julle op pad is, is dit heeltemal anders. Daar is net berge en vlaktes en almal is van reënwater afhanklik. Die Here sal egter vir die land sorg en oor alles waghou. As julle na al die voorskrifte luister wat ek julle vandag gee, as julle die Here werklik liefhet en Hom met oorgawe dien, sal Hy altyd reën op die regte tyd stuur. Jy sal lente- sowel as somerreëns kry, sodat jy genoeg koring, wyn en olie sal hê. Ook vir jou vee sal daar oorgenoeg gras wees. Julle sal almal eet en drink en versadig wees. Moet egter nie deur ander gode verlei word nie. Moet nooit ander gode dien nie. As julle dit doen, sal julle die Here teleurstel en kwaad maak. Dan sal Hy die hemel toesluit sodat daar nie meer reën sal val nie. Hy sal ook nie langer sorg dat die land sy vrug gee nie. Binne ’n kort tydjie sal julle dan die land wat die Here so graag vir julle wil gee, moet verlaat. “Al die woorde wat ek julle vandag leer, moet julle in julle hart bêre en altyd daaraan dink. Maak dit aan julle arms vas en bind dit styf om julle voorkop. Julle moet ook julle kinders daarvan vertel en julle moet oral daaroor praat. Of julle nou in julle huis sit of op pad is of ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, julle moet altyd daaroor nadink. Skryf dit op julle huise se deurkosyne en op die groot hekke van die stad. Dan sal julle en julle kinders lank en gelukkig in die land leef wat die Here vir julle voorouers beloof het. Julle sal in daardie land woon so lank as wat daar ’n hemel en ’n aarde is. “Leef getrou volgens al die voorskrifte wat ek julle vandag gee. As julle die Here liefhet en sy wil streng uitleef, sal Hy al die nasies wat in die land woon waarheen julle op pad is, verdryf sodat julle daar kan gaan bly. Hy sal nasies vernietig wat baie groter en sterker as julle is. Elke plek waar julle in die land rondstap, sal julle s’n word. Die hele gebied van die woestyn af tot by die Libanonberg in die noorde en van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste. Waar julle ook al gaan, sal julle die ander nasies oorwin. Niemand sal teen julle standhou nie. Die Here sal sorg dat almal vir julle bang is.” “Vandag moet julle tussen ’n seën en vloek kies. Indien julle al die gebooie van die Here gehoorsaam wat ek julle vandag hier gee, sal dit met julle sommer baie goed gaan. Indien julle ongehoorsaam is en die rug vir die Here draai en ander vreemde gode aanbid, sal ’n vloek op julle rus. Wanneer julle die Beloofde Land binnegegaan en daar gaan woon het, moet julle op die berg Gerisim die seën van die Here uitroep en op die Ebalberg sy vloek. Hierdie twee berge lê aan die westekant van die Jordaan in die gebied van die Kanaäniete wat in die Jordaanvallei woon en digby Gilgal se waarsêersboom. Julle staan op die punt om die Jordaan oor te steek en die land in besit te neem wat die Here graag vir julle wil gee. Wanneer julle in die land woon, sorg dat julle volgens hierdie gebooie leef wat ek julle vandag gee.” “Hier volg al die wette waarvolgens julle moet leef in die land wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle wil gee. Wanneer julle daardie land binnekom, moet julle al die plekke verwoes waar die nasies hulle gode aanbid het. Vernietig alles op die hoë berge, bo-op heuwels en onder elke groen boom. Hulle altare moet jy omstoot, hulle klipstene verbrysel, hulle heilige pale met vuur verbrand, die beelde van hulle gode stukkend kap en hulle name van die plekke verwyder. “Moenie die Here aanbid soos die nasies hulle gode aanbid nie. Uit al die stamme van Israel sal die Here een plek kies waar sy mense bymekaar moet kom om Hom te aanbid. Daarheen moet julle julle brandoffers en slagoffers bring. Dit is ook die plek waarheen al die tiendes en ander bydraes asook alle gelofteoffers, vrywillige offers en die eerste offers van julle vee geneem moet word. Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here vrolik en gelukkig wees. Julle en julle huisgesinne moet die Here daar loof vir al die wonderlike dinge wat Hy aan julle gegee het. “Wanneer julle die land ingeneem het, moet julle nie aanhou om te doen wat julle tot nou toe gedoen het nie. Julle moenie sommer oral aanbid nie. Dit het julle gedoen voordat julle die Beloofde Land binnegegaan het. Wanneer julle binnekort deur die Jordaan trek, sal julle die land binnegaan wat die Here julle God graag aan julle wil gee. Hy sal julle daar rustig laat woon en julle teen julle vyande beskerm. Dan sal die Here net een plek kies waar Hy aanbid moet word. Daarheen moet julle alles bring wat ek julle vroeër gesê het: julle brandoffers, slagoffers en tiendes, asook daardie geskenke wat julle die Here belowe het. Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here julle God gelukkig wees. Julle kinders, julle werkers en die Leviete wat by julle woon, moet vrolik voor die Here wees. Dink altyd aan die Leviete, want hulle het nie ’n deel van die land gekry nie. “Julle moenie meer by enige plek waarvan julle hou, gaan offer nie. Julle moet net na die spesifieke plek toe gaan wat die Here uit al die stamme van Israel sal kies. Daarheen moet julle julle brandoffers bring en daar moet julle alles doen wat ek vir julle gesê het. Julle mag natuurlik oral diere slag en eet. Eet na hartelus soveel as wat die Here julle gegee het. Almal kan van die vleis eet soos ’n mens ’n takbok of ’n ribbok eet. Net die bloed mag julle nie eet of drink nie. Julle moet dit weggooi. Julle mag egter nie die tiendes van julle koring, mos, olie en die eersgeborenes van julle vee in julle blyplekke eet nie. Ook nie die vrywillige offers wat julle die Here belowe het of enige ander offer nie. Julle en julle kinders asook julle werkers en die Leviete wat in julle dorpe woon, moet hierdie offers net by een plek eet. En dit is die plek wat die Here sal kies. Daar moet julle voor die Here bymekaarkom en bly wees oor julle harde werk. Onthou net, moet nooit die Leviete afskeep nie. So lank as wat julle in die land woon, moet julle vir die Leviete sorg. “Wanneer die Here julle woongebied uitbrei soos Hy belowe het, en julle lus kry vir vleis, mag julle eet wanneer en waar julle ook al wil. En as die plek wat die Here gaan kies vir julle te ver is, kan julle maar van die skape en beeste slag wat die Here vir julle gegee het en by die huis eet. Enigeen kan die vleis eet. Moet net nie die vleis rou eet nie, want die lewe is in die bloed. Daarom moet jy nie vleis met bloed en al eet nie. Moenie die bloed drink nie, maar gooi dit uit. Onthou, moenie die bloed drink nie. As julle hierdie voorskrifte nakom, sal dit met julle en julle kinders baie goed gaan. “Al die offers en die tiendes wat aan die Here gegee word, moet julle net na een plek toe bring. Slegs daar moet julle die brandoffers met die vleis en die bloed volledig op die altaar verbrand. En slegs daar moet julle ’n deel van die slagoffer eet en die bloed op die altaar van die Here uitgooi. “Israel, luister mooi na alles wat ek vir julle sê. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here. Dan sal dit met julle en julle kinders vir altyd baie goed gaan.” “Wanneer die Here al die nasies vernietig het sodat julle in die land kan gaan woon, moet julle baie versigtig vir die ander volke se gode wees. Moet hulle glad nie dien nie. Moenie eers wonder hoe die gode aanbid word nie. Moet tog nooit die Here aanbid soos die nasies hulle gode aanbid nie. Hulle doen dinge wat die Here haat. Ter ere van die gode gooi hulle sommer maklik hulle kinders in die vuur. En dit is vir die Here ’n gruwel. “Israel, julle moet alles doen wat ek, Moses, vir julle gesê het. Moet niks hierby voeg nie en moet niks wegneem nie.” “As ’n profeet of ’n dromer vir jou sê dat die een of ander teken of wonder gaan plaasvind en dit gebeur soos die profeet of dromer voorspel het, sal hulle jou ook van die Here af wegrokkel. Hulle sal sê jy moet saam met hulle gaan om ander gode te aanbid. Jy mag hoegenaamd nie na hulle luister nie. Die Here toets jou net. Hy wil net sien of jy Hom nog liefhet en of jy Hom nog met oorgawe dien. Dit is die Here jou God wat jy moet volg, liefhê en dien en vir wie jy moet omgee. Jy moet net na die Here se stem luister en net doen wat Hy sê. Die profeet en die dromer wat jou wou verlei, moet onmiddellik doodgemaak word. Hulle wou hê dat jy die rug draai vir die Here, die God wat jou uit Egipte laat wegtrek het en dat jy nie meer volgens die Here se wil moet leef nie. Sulke mense is gevaarlik. Hulle moet dadelik uit julle midde verwyder word. “Wanneer jou eie broer of jou kind, jou vrou, jou vriend of enigiemand vir wie jy lief is, jou eenkant toe roep en sê: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode wat ons ouers nie eens geken het nie,’ moet jy oppas. En as hulle wil hê dat jy die gode van die mense naby jou en ver van jou af moet aanbid, moet jy nie eens na hulle luister nie. Jy moenie simpatie met hulle hê nie en hulle ook nie eens beskerm nie. Sorg dat hulle onmiddellik met klippe doodgegooi word. Jy moet sommer die eerste klip optel en gooi. Al die ander moet saam met jou sorg dat hulle doodgemaak word. Dié mense het jou van die God probeer vervreem wat jou uit Egipte laat wegtrek het. Daarom moet hulle uit die gemeenskap verwyder word. Almal sal hoor wat met daardie slegte mense gebeur het en dit sal hulle afskrik om nie weer so iets te doen nie. “Indien mense oor een van die dorpe in die nuwe land wat die Here vir jou gee, slegte dinge begin vertel, en as hulle sê dat slegte mense die dorp se inwoners probeer oorreed om vreemde gode te aanbid, moet jy die saak baie deeglik ondersoek. As die gerugte waar is, moet jy die skuldiges en hulle vee doodmaak. Verwoes die stad ook heeltemal. Vat die skuldiges se besittings en bring dit na die dorpsplein toe. Stapel dit alles opmekaar en steek dit aan die brand. Moet nooit die dorp herbou nie; laat die puinhope vir ewig net so lê. Moet niks van die dorp of die skuldiges vir jou vat nie. Dan sal die Here nie meer so kwaad wees nie en sal Hy jou opnuut liefhê. Soos Hy jou lank terug al belowe het, sal Hy jou nog ’n groot volk maak. Israel, luister na die Here se stem. Leef volgens die gebooie wat ek jou vandag gegee het en doen die dinge waarvan die Here hou.” “Julle is tog die Here se kinders; daarom moet julle nie so rou oor julle geliefdes wat dood is dat julle julle eie liggaam stukkend sny of julle kop kaal skeer nie. Julle is mos die Here se eiendom. Hy het julle tussen al die ander volke gaan uitsoek en vir Hom gevat.” “Julle mag nie allerlei walglike diere of insekte eet nie. Julle mag wel van die groot landdiere eet, soos bees, skaap, bok, takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok, al daardie diere waarvan die hoewe uit twee dele bestaan en wat herkou. Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Diere soos die kameel, die haas en die dassie is verbode. Hulle is diere wat herkou, maar nie gesplete kloue het nie. Hierdie diere is vir julle onrein. Varke is ook vir julle onrein; daarom mag julle nie varkvleis eet nie. Hulle het wel gesplete kloue, maar herkou nie. Moet nooit van hierdie verbode diere eet of selfs aan die karkasse raak nie. “Julle mag enige vis met vinne en skubbe eet. Alle waterdiere sonder vinne of skubbe mag julle nie eet nie, want hulle is onrein. “Alle voëls wat rein is, mag julle eet. Die volgende mag julle egter nie eet nie: arende, lammervangers en visarende; swartaasvoëls, valke en al die roofvoëlsoorte; al die kraaisoorte; volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls; uile, ibisse en flaminke; pelikane, swane en visvangers; ooievaars en al die reiersoorte; hoep-hoepe en vlermuise. “Alle insekte met vlerke is onrein. Julle mag dit nie eet nie. Julle mag ook net voëls eet wat rein is. “Julle mag nie ’n dier wat vanself dood is, eet nie. Julle mag dit wel vir mense van ander volke wat by julle bly, gee om te eet of dit selfs aan buitelanders verkoop. Julle mag dit self nie eet nie, want julle is die Here se eiendom.” “Elke jaar moet jy ’n tiende van jou hele oes vir die Here opsy sit. Dan moet jy dit na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Daar moet jy die tiende van jou koring, mos en olie, asook die eerstelinge van jou beeste en skape, in die Here se teenwoordigheid neersit en ’n deel daarvan eet. So sal jy leer om die Here altyd lief te hê. “Wanneer alles wat jy as ’n tiende vir die Here vat egter vir jou te swaar word omdat die plek wat die Here gaan kies, te ver is, moet jy die tiendes verkoop. Vat dan die geld en gaan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys. Koop vir jou daar net wat jy wil hê. Koop genoeg beesvleis, lamsvleis, wyn en enige ander drinkgoed. Neem dit dan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys en geniet dit daar saam met jou familie en wees bly in die Here. “Moet nooit die Leviete wat in julle dorpe en stede woon, vergeet nie. Hulle het mos nie grond in die Beloofde Land gekry nie. Daarom moet jy aan die einde van elke derde jaar die hele tiende net so aan die Leviete in jou dorpe en stede gaan gee. Dan kan die Leviete wat geen grond besit nie, sowel as die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees daarvan eet en versadig word. As jy al hierdie dinge doen, sal die Here jou gelukkig maak en jou harde werk voorspoedig maak.” “Aan die einde van elke sewe jaar moet jy almal se skuld afskryf. Dit beteken dat almal wat geld vir ’n mede-Israeliet geleen het, dit in die sewende jaar moet afskryf. Hy moet geensins probeer om dit terug te kry nie, want die Here het gesê dit moet so gebeur. Jy mag wel die geld wat iemand van ’n ander volk jou skuld, probeer terugkry, maar nie wat jou broer jou skuld nie. “Daar sal geen arm mense meer onder julle wees nie, want die Here sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy jou beloof het. Maar dan moet jy elke dag na die Here se stem luister en sy wil uitleef. Soos die Here gesê het, sal dit met jou so goed gaan dat baie volke van jou sal leen sonder dat jy self hoef te leen, en jy sal oor baie heers sonder om self oorheers te word. “Wanneer ’n mede-Israeliet in een van die dorpe van die land wat die Here aan jou gaan gee tog arm word en nie kos het om te eet nie, moet jy hom help. Jy mag nie jou hart en jou hand vir jou broer toemaak nie. Jy moet jou hand en jou beursie oopmaak en vir jou broer genoeg geld vir kos en klere leen. Moenie dink die sewende jaar is naby en dan weier om jou broer te help nie. Hy sal met die Here gaan praat; dan sal jy skuldig staan. Jy moet jou broer help sonder om te kla. Die Here sal jou dan in alles voorspoedig maak. Armes sal daar altyd wees; daarom moet jy sensitief vir jou broer se swaarkry wees. “Wanneer ’n mede-Israeliet so baie skuld dat hy as ’n slaaf aan jou verkoop word, moet hy ses jaar lank vir jou werk, maar in die sewende moet jy hom weer laat weggaan. Wanneer hy vertrek, moet jy hom darem nie met leë hande laat gaan nie. Gee hom volop van die goeie dinge waarmee die Here jou geseën het. Gee hom van jou vee, jou koring en jou wyn. Onthou, jy was ook ’n slaaf in Egipte, maar die Here het jou daaruit weggevat. Dit is waarom ek jou vandag hierdie opdrag gee. Wanneer daardie werker egter sê dat hy jou en jou gesin liefhet en eerder by julle wil bly, moet jy dit toelaat. Jy moet hom teen ’n deur laat staan en met ’n skerp voorwerp dwarsdeur sy oor tot in die deur druk. Dit sal die teken wees dat hy vir altyd jou werker sal wees. Jy moet ook dieselfde met ’n vrou doen wat jou slaaf is. Moenie bitter voel as jy ’n slaaf in die sewende jaar moet vrylaat nie. Hy het darem ses jaar vir jou teen die helfte van ’n gewone werker se salaris gewerk. Laat hom gaan en die Here sal vir jou ook goed wees.” “Al die manlike diere van jou skape en beeste wat eerste gebore is, moet jy vir die Here opsy sit. Moenie daardie beeste laat werk of die skape skeer nie. Elke jaar moet jy hierdie vee na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Dan moet jy dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag en dit saam met jou familie eet. Indien so ’n eersteling lam of blind is, moet jy dit nie vir die Here offer nie. Dan kan jy dit sommer daar waar jy bly, slag en almal kan dit eet. Net die bloed mag jy nie eet of drink nie. Gooi dit weg.” “Elke jaar in die maand Abib moet jy die paasfees vier. Dit was in die maand Abib dat die Here julle een nag uit Egipte laat wegtrek het. Jy moet van jou skape en beeste na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Wanneer jy van die vleis eet, moet jy brood wat sonder suurdeeg gebak is, daarmee saam eet. Sewe dae lank moet jy sulke ongesuurde brood eet, want dit moet jou laat terugdink aan die swaarkrydae in Egipte, asook die haas waarmee jy daar weg is. Eet hierdie bitter brood sodat dit jou aan die bitter tyd in Egipte kan herinner. Sewe dae lank moet daar nêrens suurdeeg by julle wees nie. Van al die vleis wat jy vir die eerste aand van die fees slag, mag daar niks tot die volgende môre oorbly nie. “Jy mag die paaslam nie sommer op enige plek slag nie, maar net by die plek wat die Here nog sal kies. Slag dit teen sononder, want dis teen sononder dat die uittog uit Egipte begin het. Jy moet die vleis gaarmaak en op die plek eet wat die Here nog in die Beloofde Land sal kies. Teen die volgende oggend se kant kan julle maar weer huis toe gaan. Ses dae lank moet jy dan ongesuurde brood eet en op die sewende moet jy vrolik en feestelik saamkom om die Here jou God te eer. Op hierdie dag mag niemand werk nie.” “Jy moet die weke mooi bereken. Van die oomblik af dat jy jou koring begin sny, moet jy begin tel. Tel tot by sewe weke. Dan moet jy die fees van die weke tot eer van die Here jou God begin vier. Bring ’n offer en kom bymekaar by die plek wat die Here nog sal kies. Daar moet julle vrolik en bly wees in die teenwoordigheid van die Here. Jy en jou kinders, jou werkers, die Leviete van jou dorp en die mense van ander volke wat by jou bly. Ook die weeskind en weduwee moet saamkom en vrolik wees. In dié tyd moet jy daaraan dink dat jy baie in Egipte gely het. Daarom moet jy die fees van die weke getrou vier.” “As jy klaar by die dorsvloer gewerk en by die parskuip die druiwe getrap het, moet jy sewe dae lank die huttefees vier. Jy moet dit saam met jou kinders, jou werkers, die Leviete, die vreemdelinge uit ander volke, die weeskind en die weduwee geniet. Sewe dae lank moet jy by die plek wat die Here nog sal kies, bymekaarkom en tot die Here se eer feesvier. Wees vrolik, want die Here het jou arbeid en jou oes geseën. “Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar. Elkeen moet ook iets saambring. Ooreenkomstig dit wat die Here vir jou gegee het, moet jy ook gee.” “In elke dorp wat die Here jou gee, moet jy amptenare aanstel. Hulle moet die mense goed regeer en in die hof regverdige uitsprake maak. Hulle moet nooit partydig of onredelik wees nie. Hulle moet ook nooit omkoopgeskenke aanvaar nie. Sulke geskenke maak selfs die slimstes en die eerlikstes blind vir die waarheid. In alle sake moet hulle billik en regverdig wees. Dan sal julle die Beloofde Land binnegaan en vir altyd daar bly.” “Wanneer jy vir die Here ’n altaar gebou het, moet jy tog nooit ’n paal ter ere van Asjera langsaan inkap nie. Los ook alle klippilare wat vir die afgode opgerig is. Die Here haat sulke dinge.” “Wanneer jy ’n dier, ’n skaap of ’n bees bring om vir die Here jou God te offer, mag dit nie ’n gebreklike dier wees nie. Met só ’n offer beledig jy die Here. Hy hou net mooi niks daarvan nie. “Sê nou maar iemand wat in ’n dorp bly, breek die ooreenkoms wat die Here jou God met jou gemaak het. Sê nou iemand doen ’n baie slegte ding deur ander gode te aanbid. Hy buig dalk voor die son of die maan of een van die planete of sterre en aanbid hulle asof hulle gode is. Natuurlik het die Here jou God jou verbied om enige ander gode te aanbid. Wel, as jy hoor dat iemand so iets afskuweliks gedoen het, moet jy baie deeglik ondersoek instel na wat daar gebeur het. As dit waar is dat iemand dit gewaag het om so iets afskuweliks in Israel te doen, moet jy daardie mens tot by die uitgang van die stad vat. Daar moet julle hom dan met klippe doodgooi. Maar jy mag nooit iemand doodmaak net omdat een persoon sê dat hy dit gedoen het nie. Daar moet altyd ten minste twee of drie mense wees wat gesien het dat die persoon iets afskuweliks gedoen het. Die mense wat kom vertel het dat die persoon so iets gedoen het, moet altyd die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak. Dan moet die ander mense in die dorp ook die persoon met klippe gooi. Op hierdie manier moet jy keer dat slegte dinge tussen julle gebeur.” “Sê nou maar iemand word voor jou hof gedaag, en jy kan nie besluit hoe sy saak hanteer moet word nie. Hierdie persoon het dalk iemand doodgemaak of iemand aangerand of iets anders gedoen wat baie ernstig is. Julle kan nie saamstem hoe om die saak te hanteer of watter straf die skuldige persoon opgelê moet word nie. Hoe hanteer jy dit dan? Wel, gaan na die plek toe wat die Here jou God sal kies om sy huis te laat bou. Gaan dan na die kinders van Levi wat by die huis van die Here sal werk. Daar onder hulle is ook mense wat ernstige hofsake kan hanteer. So ’n ernstige saak moet by hulle uitkom. Hulle sal besluit of die persoon skuldig is, en wat sy straf moet wees as hy skuldig is. Jy moet dan presies doen wat hulle besluit met die skuldige persoon gedoen moet word. Hulle werk nie verniet in die huis wat die Here sal kies om in te woon nie. Doen alles wat hulle vir jou sê om te doen. Lewe soos hulle sê jy moet. Hulle sal besluit wat die wet sê met die persoon gedoen moet word wat skuldig is aan die een of ander misdaad. Jy mag niks verander aan die uitspraak wat hierdie hof gee nie. Iemand steur hom dalk nie aan die mense wat in die huis van die Here werk nie. Of hy waag dit om te verander aan die opdrag wat die regter gee oor wat met die skuldige persoon gedoen moet word. Of hy steur hom nie aan wat die persoon sê wat in die huis van die Here werk nie. So ’n persoon moet op die plek doodgemaak word. Só sal almal daarvan hoor en te bang wees om ook so te maak.” “Een van die dae trek jy in die land in wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy moet hierdie land vir jouself vat en daarin gaan bly. Dan kan jy dalk op ’n dag begin dink: ons behoort ook ’n koning te hê, want al die ander nasies wat rondom ons bly, het konings. “As dit gebeur dat jy ’n koning wil aanstel, moet jy baie seker maak jy kies die man wat die Here jou God vir hierdie werk gekies het. Jy moet iemand kies wat ook ’n Israeliet is. Jy mag nie iemand van ’n ander nasie as koning oor jou aanstel nie. Hierdie koning mag nie vir hom ’n groot klomp perde bymekaarmaak nie. Hy mag ook nooit toelaat dat die mense van sy volk na Egipte toe gaan om daar perde te gaan koop nie. Die Here het mos baie duidelik vir jou gesê dat jy nooit weer na Egipte mag teruggaan nie. Jou koning mag ook nie vir homself ’n klomp vroue vat en met hulle trou nie. Hulle sal hom dalk beïnvloed sodat hy nie meer die Here alleen dien nie. Hy moet ook nie baie geld en besittings vir homself bymekaarmaak nie. “As hy as koning op die troon sit, moet hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het om te doen. Hy moet hierdie boek afskryf van die boek wat by die mense is wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi. En hierdie mense moet toesien dat hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het. Hy moet die boek met hierdie opdragte elke dag by hom hou. Hy moet elke dag daaruit lees, solank hy leef. So sal hy leer om die Here te respekteer, as hy alles doen wat Ek jou beveel het om te doen. As hy elke dag uit hierdie boek lees en agterkom wat Ek van hom verwag, sal hy nie trots word en begin maak of hy beter is as die ander mense wat saam met hom in die land bly nie. Dit sal ook keer dat hy wegdraai van die pad wat Ek gesê het hy moet loop. Dan mag hy dalk op ander paaie begin loop. As hy alles doen wat Ek hom beveel, sal hierdie koning en sy kinders en kleinkinders vir baie lank as konings oor die volk Israel regeer.” “Onthou dat die Here nie vir die mense wat in sy huis werk, die nageslag van Levi, grond gegee het om op te boer nie. Hy het vir al die ander stamme van Israel grond gegee, maar nie vir hulle nie. In plaas daarvan dat hulle grond kry om op te boer, gee Hy vir hulle die offers wat julle na sy huis toe bring om daar te verbrand as julle Hom dien. Dit is waarvan hulle moet leef. Hulle het niks anders wat hulle erf nie. Hulle besit self niks nie. Die Here self is al wat hulle erf. So het Hy vir hulle belowe: Hy sal vir hulle sorg. “Die mense wat in sy huis werk, mag die volgende van die beeste en skape kry wat julle as julle offers na sy huis toe bring om vir Hom geoffer te word: die skouer, kakebeen en pens van elke dier. Jy moet ook vir hierdie mense die beste deel, die eerste deel van die koring wat van jou land af kom, gee, asook van die wyn wat jy maak. Jy moet ook vir hulle ’n deel gee van die olie wat jy maak en die wol wanneer jy jou skape skeer. Want die Here het hierdie mense, die kinders van Levi, gekies om in sy huis te werk. Hulle moet vir altyd werk waar Hy teenwoordig is. Hulle kinders en kleinkinders moet ook in my huis werk. “Enige mens wat aan die stam van Levi behoort en in een van die dorpe van Israel bly, mag in sy huis kom werk as hy wil. Sy huis is die plek wat Hy gekies het om in te woon. Daar mag hy dan werk waar Hy teenwoordig is, net soos die ander kinders van Levi wat daar werk en die Here hulle God dien. As hy in die Here se huis werk, moet hy ook sy deel kry van die offers sodat hy daarvan kan lewe. Selfs as hy genoeg het om vir homself te sorg, moet hy ’n deel van die offers kry.” “Wanneer jy kom in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy baie versigtig wees dat jy nie maak soos die mense wat nou nog in daardie land bly nie. Hulle doen afskuwelike dinge. Jy mag byvoorbeeld nie jou seun of dogter as ’n offer verbrand om heidense afgode te aanbid nie. En jou mense mag ook nie ander se fortuin vertel of volgens die sterre dinge vir mense voorspel nie. Hulle mag ook nie by toordery betrokke raak nie. Jy mag nie toelaat dat iemand onder jou mense die toekoms probeer voorspel deur tekens te probeer verklaar nie. Niemand mag hekse besoek of aan hulle byeenkomste deelneem nie. Jou mense mag nie ander mense probeer toor nie en hulle mag nie met dooies kontak maak om so inligting by hulle te kry nie. Enige mens wat hom met hierdie dinge besig hou, is vir die Here walglik. Hy kan so ’n mens nie voor sy oë verdra nie. Dis omdat die nasies wat nou in daardie land bly, hierdie dinge gedoen het dat die Here jou God hulle uit die land gaan wegdryf. Hy gaan hulle land vir jou gee. Jy moet sorg dat jy reg voor die Here leef. Die mense wat jy daar gaan wegjaag, hou van mense wat hulle met toordery ophou en die toekoms voorspel. Luister mooi: die Here jou God verbied jou om jou met hierdie dinge besig te hou.” “Die Here jou God sal iemand onder jou volk stuur wat vir julle sal sê wat die Here wil hê julle moet weet, net soos Hy my gestuur het. Julle moet luister as hierdie man met julle praat, want hy sê wat hy van my hoor. Dis mos wat julle daar by die berg Horeb ernstig vir die Here gevra het toe julle voor Hom bymekaar was. Julle het mooi gevra dat Hy nooit weer self met julle moet praat nie. Of dat Hy Homself weer in die vuur vir julle moet wys nie, want julle was bang dat julle sal doodgaan as Hy self met julle kom praat. “Daar het die Here vir my gesê: ‘Goed, Ek sal maak soos hierdie klomp mense vir My gevra het. Ek sal iemand stuur om vir julle te sê wat Ek julle beveel. Hy sal alles vir die volk kom vertel wat Ek hom beveel. As een van julle nie wil luister wat hierdie man vir julle sê nie, sal hy met My self te doen kry. Ek sal self met hom afreken! “‘Maar as daar iemand tussen julle is wat sê dat hy by ’n ander god ’n boodskap gekry het om vir julle te gee, of wat sê dat hy iets by My gehoor het, en hy lieg, moet julle hom doodmaak.’ “Miskien wonder julle: Hoe sal ons weet of hierdie mens werklik iets by die Here gehoor het? Het hy dit nie dalk sommer self uitgedink nie? So sal julle kan uitvind of hy die waarheid praat: as hy iets voorspel en sê die Here het vir hom gesê dit gaan gebeur, en dit gebeur nie, dan weet julle mos dis nie die Here wat met hom gepraat het nie. Hierdie mens het sommer uit sy eie gepraat. Jy hoef jou nie aan hom te steur nie.” “Binnekort sal die Here die nasies vernietig wat nou in die land bly wat Hy vir jou gaan gee. Jy gaan in hulle plek bly en hulle dorpe en hulle huise vir jouself vat. Wanneer jy daar bly, moet jy drie stede in die land wat die Here vir jou gaan gee, eenkant sit waarin mense kan gaan wegkruip. Verdeel die land wat die Here jou gaan gee in drie distrikte. Kies dan ’n stad in elke distrik. Sorg dat daar goeie paaie na hierdie stede toe is. As iemand moord pleeg, kan hy dan vlug en in een van hierdie stede gaan skuil. “As iemand per ongeluk ’n persoon doodmaak sonder dat hy iets teen daardie mens gehad het, moet hy na hierdie stad toe vlug. Daar sal hy veilig wees. Sê nou maar byvoorbeeld iemand kap hout in ’n bos. Iemand anders is saam met hom. Terwyl hy hout kap, kom sy byl se kop los en tref hierdie ander mens en maak hom dood. In sulke gevalle kan daardie mens na een van hierdie stede vlug. Daar sal hy veilig wees. Die afstand na so ’n stad moenie te groot wees nie, anders maak ’n familielid wat kwaad is oor die persoon wat dood is dalk die onskuldige persoon dood voor hy homself kan beskerm. Dan word die persoon wat die dood van ’n ander veroorsaak het, maar wat self eintlik onskuldig is, doodgemaak sonder dat ’n hof hom skuldig bevind en hom die doodstraf opgelê het. Dis hoekom die Here beveel dat julle drie stede moet uitwys waar sulke mense kan gaan wegkruip totdat die hof oor hulle toekoms besluit het. “Later gaan die Here julle land groter maak en dan gaan julle grense uitgebrei word, presies net soos Hy julle voorvaders belowe het. Dan gaan Hy julle al die grond gee wat Hy julle belowe het. Hy sal julle hierdie hele land gee as julle alles doen wat Hy julle beveel, alles wat ek vir julle gesê het. Wat Hy julle beveel, is dat julle Hom sal liefhê en doen wat Hy julle beveel. Daardie dag moet julle nog drie ander stede aanwys. Op hierdie manier sal julle keer dat onskuldige mense doodgemaak word in die land wat die Here jou God jou as ’n spesiale besitting gee. Anders sal julle skuldig wees aan moord. “Maar sê nou iemand haat ’n ander persoon. En op ’n dag lê hy hierdie persoon êrens in die veld voor en maak hom dood. En sê nou hierdie moordenaar vlug na een van die stede wat julle uitgewys het waarin ’n mens kan gaan skuil. In so ’n geval moet die leiers van die moordenaar se tuisdorp die moordenaar laat haal uit die stad waar hy gaan wegkruip het. Dan moet hulle hom aan die vermoorde persoon se familie gee dat hulle hom kan doodmaak. Julle mag nie daardie moordenaar jammer kry nie! Julle moet die skuld wat moord veroorsaak, uit Israel uitroei. Anders sal dit nie met julle goed gaan nie.” “Jy mag nie in die land wat die Here jou God jou gaan gee iemand se grond steel deur sy grensdrade te verskuif nie. Die eerste mense wat in hierdie land gebly het, het die grenslyne van die grond vasgestel. So het hulle gewys watter grond behoort aan wie.” “Jy mag nooit iemand skuldig bevind aan iets wat hy verkeerd gedoen het as net een mens vertel het dat hy dit verkeerd gedoen het nie. Dit maak nie saak watter slegte daad hy ook al gedoen het nie, ten minste twee of drie mense moes dit gesien het voordat jy hom skuldig kan bevind. “As iemand nie van ’n ander persoon hou nie en hy kom sê vir die hof dat daardie persoon die een of ander misdaad gepleeg het, moet die persoon wat so sê en die persoon wat aangekla word, in my huis gaan staan. Hulle moet voor die mense verskyn wat in my huis werk en daar besluit wie is reg en wie nie. Al twee hierdie mense moet dan sorgvuldig uitgevra word. As jy uitvind dat die persoon wat die klag gelê het, gelieg het, moet jy hierdie persoon straf soos jy die ander persoon sou gestraf het as hy skuldig was aan die misdaad waarvan hy beskuldig is. Op hierdie manier moet jy jou skoonmaak van die slegte dinge wat tussen julle is. Dan sal die mense wat hiervan hoor, bang word en nooit weer so ’n slegte ding doen nie. Jy mag nie so iemand jammer kry nie. O nee! Die reël wat jy moet gebruik, is: iemand moet met sy eie lewe betaal as hy ’n lewe geneem het. Sy oog moet uitgehaal word as hy iemand sy oog gekos het. Hy moet sy hand verloor as hy iemand sy hand laat verloor het. En sy voet moet afgekap word as hy iemand sy voet gekos het.” “Jy gaan in gevegte beland. Ander nasies gaan teen jou oorlog maak. Dan gaan jy dalk sien dat hulle baie wapens het wat beter is as joune, en dat hulle meer soldate het as jy. Moet dan nie bang wees en benoud rondhardloop nie. Die Here jou God het jou veilig tot hier gelei, daar van Egipte af. Niemand minder nie as Hy is by jou. Jy het niks om voor bang te wees nie. “Voor jy gaan veg, moet die man wat in my huis werk eers voor die soldate gaan staan. Hy moet dan die soldate moed inpraat. Hy moet sê: ‘Luister na my, Israeliete! Julle staan op die punt om teen ’n vyand te gaan veg. Moenie bang wees nie. Moenie paniekbevange rondkyk wie julle sal help nie. Moenie vir julle vyand skrik nie. Die Here julle God gaan saam met julle! Hy is tussen julle. Hy sal vir julle teen julle vyande baklei. Hy sal vir julle die oorwinning gee.’ “Hierna moet die offisiere van die soldate ook met die soldate praat. Hulle moet sê: ‘Is daar iemand onder julle wat so pas ’n nuwe huis gebou het, maar nog nie eens kon intrek voor hy opgeroep is om teen die vyand te kom veg nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Dalk word hy in die geveg doodgemaak, en dan gaan bly vreemde mense in die huis waaraan hy so hard gewerk het. Is daar iemand onder julle wat pas ’n wingerd geplant het, maar nog nie eens van die vrugte van die wingerd kon eet nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Miskien word hy in die oorlog doodgemaak en dan eet iemand anders die druiwe van sy nuwe wingerd. Is daar iemand onder julle wat nou net verloof geraak het? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan en gaan trou. Dalk word hy in die geveg doodgemaak en dan trou iemand anders op die ou end met sy verloofde.’ Dan moet die offisiere ook vra: ‘Is daar iemand onder julle wat bang is? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Anders steek hy nou-nou die ander soldate aan sodat daar ’n klomp bangbroeke is wat aan die oorlog moet deelneem.’ As die offisiere klaar met die soldate gepraat het, moet hulle die leiers van die verskillende gevegseenhede se name aankondig.” “As jy oorlog teen ’n stad maak, en jy trek teen hom op, bied eers vir die mense van die stad vrede aan. Sê vir hulle onder watter voorwaardes jy hulle stad sal spaar. As hulle dan jou voorwaardes aanvaar en jou in hulle stad innooi, moet al die mense wat in die stad bly, vir jou werk sonder enige betaling. Maar as die mense nie belangstel in die vrede wat julle vir hulle aanbied nie en hulle klaarmaak om teen jou te baklei, moet jy hulle stad aanval. As die Here jou God hierdie stad vir jou gee en jy die geveg wen, moet jy elke man doodmaak wat in die stad bly. Maar die vroue en kinders en die vee en ander besittings wat jy in die stad kry, mag jy vir jouself hou. Geniet die besittings van jou vyande omdat dit die Here jou God is wat jou vyande in jou mag oorgee. Maar hierdie opdragte geld net vir stede wat ver buite jou grense val. Met die stede en dorpe van die nasies wat naby aan jou bly, moet jy anders maak. “Met die stede van die nasies wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly, moet jy so maak: jy moet alles doodmaak wat in hierdie stede leef, sonder om enigiets te verskoon. Jy moet die Hetiete en die Amoriete, die Kanaäniete en die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete voor die voet uitroei. Jy moet hulle as ’n offer aan My vernietig. Niks en niemand van hulle mag oorbly nie. So beveel die Here jou God jou. Dit sal keer dat hierdie mense, die mense wat nou in jou land bly, jou op die ou end dinge leer en jy die afskuwelike dinge begin doen wat hulle doen, en die afgode aanbid wat hulle dien. As jy hierdie dinge doen, sal jy jouself van die Here losmaak en sal Hy jou daarvoor straf. “As jy ’n stad aanval, kan dit gebeur dat dit ’n lang tyd neem voor jy uiteindelik die geveg wen. Dan mag jy nie die bome in daardie omgewing uitroei nie. Ja, jy mag van die bome se vrugte eet, maar jy mag nie die bome afkap nie. Die bome is nie jou vyande dat jy hulle moet aanval nie! Bome is kos vir die mens. Die bome wat nie vrugte dra nie en daarom nie veel beteken nie, mag jy wel afkap. Van daardie bome se hout moet jy die gereedskap maak wat jy nodig het om die stad mee aan te val tot die stad uiteindelik die knie voor jou buig.” “Sê nou maar iemand word in die veld buitekant ’n stad of ’n dorp vermoor in die land wat die Here jou God vir jou gee. Niemand weet wie die moord gepleeg het nie. In sulke gevalle moet julle leiers en landdroste bepaal watter stad die naaste is aan die plek waar die lyk gekry is. Dan moet die leiers van daardie stad ’n jong koei kies wat nog nooit geleer is of ingespan is om te ploeg nie. Hulle moet dan hierdie koei na ’n vallei neem waar daar nie geploeg of geplant word nie. Daar moet ’n stroom deur die vallei loop. Hulle moet die koei se nek daar breek. Die mense wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi, moet by hulle wees wanneer hulle dit doen. Dis immers hulle wat die Here jou God uitgekies het om vir Hom te werk. Hulle mag mense voorspoed toebid en die Here sal hulle voorspoedig maak. Dis hierdie mense wat ook moet besluit wie reg is as twee mense mekaar hof toe vat, en wat bepaal watter straf die skuldiges moet kry. “Dan moet die leiers van die stad wat die naaste is aan die plek waar die lyk gekry is, hulle hande was oor die jong koei waarvan die nek gebreek is. En dan moet hulle sê: ‘Dis nie ons wat hierdie moord gepleeg het nie. Ons het ook g’n idee wie dit gedoen het nie. Here, ons bid: vergewe u volk Israel, die mense vir wie U gered het. Sê tog dat u volk onskuldig is. Moenie u volk verantwoordelik hou vir die moord op hierdie onskuldige persoon nie. Moet dit nie teen ons hou nie.’ “Dan sal hulle nie skuldig wees aan die dood van daardie mens nie. As jy presies so maak soos ek vir jou sê, sal jy doen wat vir die Here reg is. Dan sal jou mense onskuldig wees aan die moord op daardie persoon.” “Dit kan gebeur dat jy oorlog maak teen een van jou vyande. Die Here jou God sorg dan dat jy jou vyand oorwin. Jy neem die mense van daardie stad of gebied gevange. Onder die gevangenes sien jy ’n vrou wat vir jou mooi is. Jy raak verlief op haar en wil met haar trou. Dan moet jy so maak: jy moet haar gaan haal dat sy in jou huis kom bly. Daar moet sy haar hare afskeer en haar naels kort sny. Sy moet ook die klere uittrek wat sy gedra het toe sy ’n gevangene was. Jy moet haar los dat sy ’n maand lank in jou huis bly. In hierdie tyd moet sy oor haar pa en ma treur. Eers hierna mag jy met haar trou. Maar sê nou jy trou met haar en vind dan later uit dat jy nie meer lief is vir haar nie. Dan moet jy haar laat weggaan. Jy mag haar nie verkoop nie. En jy mag haar nie behandel asof sy ’n huishulp is nie, want jy het by haar geslaap.” “Sê nou ’n man het twee vroue. Hy is baie lief vir die een, maar nie vir die ander een nie. Hy het ’n seun by al twee hierdie vroue. Sê nou die seun wat eerste gebore word, is die seun van die vrou vir wie hy nie baie lief is nie. As hierdie man nou in sy testament skryf wie wat moet erf, mag hy nie dat die jonger seun meer erf as die ouer broer net omdat hy die seun is van die vrou wat hy liefhet nie. Die ouer seun moet ’n dubbele deel kry van wat geërf word, soos dit die gebruik onder julle is. Die pa het immers hierdie seun eerste gehad en hierdie seun moet erf as die seun wat eerste gebore is, selfs al is hy die seun van die vrou vir wie die pa nie baie lief is nie.” “Sê nou ’n pa het ’n seun wat nie wil luister wat hy vir hom sê nie. Die seun is opstandig teen sy pa en ma en steur hom nie aan wat hulle hom beveel nie. Selfs al slaan hulle hom, hoor hy nie. Dan moet die pa en ma hulle seun na die leiers van die stad toe vat. Hulle moet vir die leiers sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig teen ons. Hy luister nie as ons met hom praat nie. Al wat hy van die môre tot die aand wil doen, is om soos ’n vraat en ’n dronklap aan te gaan.’ “Dan moet al die mans van daardie stad die seun vat en hom met klippe doodgooi. As julle so maak, sal julle julle land skoonhou van slegte dinge. Al die inwoners van Israel sal hoor wat gebeur het, en dan sal hulle te bang wees om dit ook te doen.” “Iemand onder julle mag die doodstraf opgelê word vir iets wat hy verkeerd gedoen het. Hy word dan opgehang. Die lyk van hierdie man mag nie oornag aan die galg bly nie. Jy moet daardie selfde dag nog die lyk begrawe, want God vloek enige mens wat opgehang word. Moenie die land wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly, onrein maak nie. “Op ’n dag sien jy dalk hoe jou buurman se bees of skaap wegdwaal. Moenie maak of jy dit nie sien nie. Wees eerlik. Vat die dier terug na sy eienaar toe. As dit nie aan iemand behoort wat in jou omgewing bly nie, of as jy nie weet wie se dier dit is nie, vat dan die dier na jou huis toe. Dit sal veiliger by jou wees. Hou dit daar en versorg dit tot die eienaar daar opdaag om na sy dier te soek. Gee dit dan vir hom. Maak ook so as jy iemand se donkie kry, of sy klere of enigiets wat aan iemand anders behoort wat hulle verloor het. Moenie maak of jy dit nie sien nie. “Sê nou jy sien iemand se os of donkie het inmekaargesak omdat hulle moeg is van al die goed wat hulle moet dra. Moenie maak of jy dit nie sien nie. Staan eerder nader en help die man om die dier weer op sy pote te kry. “’n Vrou mag nie klere dra wat mans normaalweg dra nie. Net so moet ’n man ook nie klere dra wat vroue gewoonlik dra nie. Mense wat so iets doen, is walglik vir die Here jou God. “Dalk kry jy ’n voëltjie se nes wat op die grond lê, of jy kry ’n nes in die boom. In die nes is daar klein voëltjies of eiertjies terwyl die ma nog op die nes sit. Dan mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie. Nee, los die ma en laat haar vlieg as jy die kleintjies vir jou wil vat. As jy so maak, sal dit met jou goed gaan en sal jy ’n lang lewe geniet. “As jy ’n nuwe huis bou met ’n plat dak, en jy beplan dat julle op die dak gaan kuier, moet jy dadelik ’n reling rondom die dak laat aansit. Anders kan iemand van die dak afval en so seerkry dat hy doodgaan. Dan is jy vir daardie mens se dood verantwoordelik. “Jy mag nie ander gewasse tussen jou rye druiwe plant nie. As jy so maak, mag jy nie die druiwe of die ander gewas wat jy geplant het, self gebruik nie. Nee, jy moet dan al die vrugte vir die huis van die Here gee. “Moenie ’n bees en ’n donkie saam voor ’n ploeg inspan nie omdat hulle nie gelyk trek nie. Albei gaan seerkry. “Moenie klere dra wat van sowel wol as linne gemaak is nie. “Werk klossies aan die hoeke van jou klere vas.” “Sê nou ’n man trou met ’n vrou. Nadat hy by haar geslaap het, besluit hy dat hy nie meer lief is vir haar nie. En sê nou hy beskuldig haar dan valslik daarvan dat sy voorheen by ’n ander man geslaap het. Hy sê skielik: ‘Ek het agtergekom dat hierdie vrou voorheen by ander mans geslaap het voor sy met my getrou het.’ “As ’n man só maak, moet die vrou se pa en ma die bewys na die leiers van hulle stad bring dat hulle dogter nog nooit voorheen by ’n ander man geslaap het nie. Hy moet die laken waarop sy en daardie man die eerste huweliksnag geslaap het, met die bloed daarop, as bewys bring dat sy regtig ’n maagd was. Haar pa moet dan vir die leiers verduidelik: ‘Ek het my dogter vir hierdie man gegee sodat hy met haar kon trou. Nou, ewe skielik, draai hy teen haar. Hy sê sy het by ander mans geslaap voor sy met hom getroud is. Maar kyk hier, ek het vir julle die bewys gebring dat sy nooit voorheen by enige ander man geslaap het nie.’ “Dan moet hy die laken voor die leiers van sy stad oopvou. Die regters moet dan hierdie man straf. Hy moet ’n goeie loesing met ’n sweep kry. Hulle moet hom ook ’n boete laat betaal. Hy moet ’n kilogram silwer betaal omdat hy sy vrou valslik daarvan beskuldig het dat sy by ander mans geslaap het. Die geld wat hy betaal, moet na die vrou se pa gaan. Die vrou bly dan met haar man getroud. Hy mag nooit van haar skei nie. “Maar sê nou haar man het sulke beskuldigings gemaak, en dit is waar. Sy het by ander mans geslaap voor sy getrou het. In sulke gevalle moet die regters saam met die vrou na haar pa se huis toe gaan. Hulle moet by haar pa se huis se deur gaan staan. Dan moet die mans van die stad haar met klippe doodgooi. Sy het iets baie slegs gedoen deur by ander mans te slaap terwyl sy nog ongetroud was. Sulke slegte dinge moet julle nie tussen julle duld nie. “As ’n man by ’n ander vrou slaap terwyl hy getroud is, moet hy en die ander man se vrou, die vrou by wie hy geslaap het, doodgemaak word. Op hierdie manier sal julle die slegte dinge tussen julle uitgeroei kry. “Sê nou maar ’n man ontmoet ’n jongmeisie wat nog nooit voorheen getroud was nie. Sy is verloof aan ’n ander man. En sê nou dit gebeur dat hierdie man by dié jongmeisie slaap. As dit in ’n stad of dorp gebeur, moet julle hulle albei na die uitgang van die stad vat. Dan moet julle hulle met klippe doodgooi. Die vrou is ook skuldig, want sy het nie geskree sodat iemand haar kon kom help terwyl die man by haar was nie. Die man moet doodgemaak word omdat hy by ’n vrou geslaap het wat met iemand anders sou trou. As jy só maak, sal jy keer dat slegte dinge in jou land gebeur. “Sê nou die man ontmoet die verloofde jongmeisie buite die stad, êrens in die veld. Hy gryp haar en verkrag haar. Dan moet net die man doodgemaak word. Julle moet niks aan die vrou doen nie. Sy het niks gedoen wat sleg is nie. Haar geval is dieselfde as wanneer iemand ’n moord pleeg waar niemand hom sien nie. Die man het die meisie buite in die veld gegryp. Sy het sekerlik om hulp geroep, maar niemand kon haar hoor nie. Daarom het niemand haar gehelp nie. “Sê nou jy betrap ’n man wat ’n jongmeisie verkrag wat nog nie by ’n man geslaap het nie en wat nie aan enige man verloof is nie. Dan moet jy hierdie man met ’n halwe kilogram silwer beboet. Hy moet die geld vir die meisie se pa gee. En hy moet met hierdie jongmeisie trou, want hy het haar eer weggeneem. Hy mag ook nooit van haar skei nie. “Niemand mag by sy pa se vrou slaap nie. As hy so iets doen, neem hy sy pa se eer weg.” “’n Man wie se geslagsdele verbrysel of afgesny is, mag nie saam met die gemeente voor die Here bymekaarkom nie. “Mense wat gebore is uit verhoudings wat nie deur die Here goedgekeur word nie, mag nie deel van die gemeente van die Here wees nie. Selfs so iemand se kinders en kleinkinders en agterkleinkinders mag nie aan die gemeente behoort nie. “Ammoniete en Moabiete en hulle kinders en kleinkinders en agterkleinkinders mag nie aan die gemeente van die Here behoort nie. Toe julle uit Egipte weggetrek het en in hierdie land aangekom het, wou hulle nie vir julle kos en water gee nie. Inteendeel, hulle het vir Bileam, die seun van Beor uit die stad Petor wat in Mesopotamië is, gehuur. Hy moes julle vloek. Maar die Here jou God het Hom nie aan Bileam gesteur nie. Trouens, die Here het Bileam se vloeke in voorspoed vir jou verander. Hy het dit gedoen omdat Hy jou baie liefhet. Jy mag nooit die Ammoniete en Moabiete op enige manier help of ondersteun nie. Jy mag hulle nie vrede of voorspoed toewens nie. Moenie hulle ooit goed behandel nie. “Maar die Edomiete en die Egiptenaars mag jy nie sleg behandel nie. Die Edomiete is jou eie mense en die Egiptenaars het vir jou gesorg terwyl jy tussen hulle gebly het. Die agterkleinkinders van Egiptenaars wat tussen julle bly, mag wel deel van die gemeente van die Here word.” “As jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg, moet jy oppas sodat jy nie verkeerde dinge doen nie. “As daar ’n soldaat onder julle is wat in die nag ’n saadstorting gehad het en daarom onrein is, moet hy nie in die kamp saam met die ander soldate bly nie. Hy moet heeldag buitekant die kamp gaan bly. Daardie aand moet hy hom dan goed was. Na die son gesak het, mag hy weer in die kamp kom. “Merk ’n area buite die kamp af waar jy ’n toilet oprig. Elke soldaat moet ’n graaf by sy toerusting hê. Waar hy dan toilet toe gaan, moet hy ’n gat grawe. As hy klaar is, moet hy alles toekrap. Jy moet die kamp beskou as ’n plek wat aan die Here behoort en in sy diens staan. Daar mag niks vuils in jou kamp wees nie, want die Here jou God is saam met jou in jou kamp. Hy beskerm jou en verslaan jou vyande vir jou. Daarom mag jy nie toelaat dat daar iets afskuweliks of slegs onder die soldate is nie. Anders sal die Here weggaan en jou nie meer help nie. “As slawe wegloop van hulle eienaar af omdat hulle sleg behandel word, en hulle kom skuil by jou, moet jy hulle nie teruggee aan hulle eienaar nie. Laat hulle eerder by jou bly in een van die stede wat hulle kies om in te bly. Jy mag nie hierdie slawe sleg behandel nie. “Dit mag nooit gebeur dat enige man of vrou onder die Israeliete by die huis van die Here hulle liggaam aanbied om met ander mense seks te hê nie. Jy mag ook nie enige geld na die tempel toe bring wat ’n man of vrou verdien het deur by iemand anders te slaap nie. Sulke geld is walglik vir die Here. Hy verdra nie sulke mans en vroue nie. “Jy mag nie rente vra as jy geld aan iemand van jou volk uitleen nie. Dieselfde geld as jy kos of iets anders aan ’n mede-Israeliet leen. Jy mag nie rente daarop vra nie. Ja, vir die mense van ander nasies mag jy rente vra, maar nie vir die Israeliete nie. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen in die land wat jy een van die dae sal binnegaan om in te gaan bly. “Dit gebeur dalk dat jy belowe om iets te doen as die Here jou God jou gebed beantwoord. Dan moet jy dadelik doen wat jy belowe het, want die Here jou God verwag van jou om jou woord te hou, om te doen wat jy vir Hom belowe het. As jy dit nie doen nie, sal jy skuldig wees aan ’n slegte ding wat jy die Here aandoen. Jy doen nie ’n verkeerde ding as jy glad nie ’n belofte maak nie. Maar as jy uit jou eie so ’n belofte aan die Here gemaak het, sal jy wys wees as jy nougeset alles doen wat jy beloof het. Jy het immers ’n belofte aan die Here jou God gemaak. “Jy mag eet soveel as wat jy wil as jy by iemand se wingerd verbyloop. Maar jy mag nie van die druiwe pluk en in ’n mandjie sit om saam te neem nie. Net so mag jy ’n paar graankorrels pluk as jy by iemand se koringland verbyloop, maar jy mag nie die graan oes nie. Dan steel jy.” “Sê nou dit gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en later ontdek dat daar iets aan haar is wat hom afsit. Dan verloor hy sy liefde vir haar. In so ’n geval mag hy ’n brief skryf waarin hy verduidelik dat hy van haar skei. Hy moet hierdie brief vir sy vrou gee. Dan moet sy uit sy huis weggaan. Dit kan dan gebeur dat sy weggaan en met ’n ander man trou. Die tweede man kan dan ook van haar skei of hy kan dalk doodgaan. Dan mag haar eerste man onder geen omstandighede weer met haar trou nie. Sy is nie meer rein nie. As hulle weer trou, sal dit iets afgrysliks vir die Here wees. Julle mag nie die land wat die Here vir julle as ’n geskenk gee, vuil maak deur sulke slegte dinge te doen nie. “’n Man wat pas getroud is, mag nie opgeroep word om in die weermag te gaan veg nie. Hy mag ook nie enige ander werk doen wat hom van sy huis af wegneem nie. Jy moet hom toelaat om die eerste jaar by sy huis te bly. Hy en sy vrou moet aan hulle huwelik werk sodat hulle ’n deeglike grondslag vir ’n gelukkige huwelik kan lê. “Iemand kan iets by jou leen en jy hou iets van hom om seker te maak dat hy die goed terugbring wat hy geleen het. Dan mag jy nie een van die klippe hou wat hy gebruik om sy mielies mee te maal nie. Jy mag nie die boonste óf die onderste maalsteen vat nie. As jy dit doen, gaan hy honger ly. “Dalk gebeur dit dat iemand van die volk Israel een van sy eie mense roof. Hy behandel dan hierdie mens sleg en laat hom werk sonder om hom te betaal. Of hy verkoop hom aan iemand anders om as ’n huishulp sonder betaling te werk. So iemand moet jy summier doodmaak. Jy moet slegte dinge uit jou midde uitroei. “Wees op die uitkyk vir velsiektes wat dalk onder mense voorkom. Party kan hoogs aansteeklik wees. Doen wat die mense wat in die huis van die Here werk jou aansê om te doen. Doen wat hulle jou beveel, want ek het vir hulle gesê wat om te doen. Onthou wat die Here aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het. “As iemand iets van jou leen, mag jy nie in sy huis ingaan en iets vat wat jy in ruil vir jouself hou nie. Staan buitekant sy huis. Hy sal wel iets vir jou bring wat jy kan hou as waarborg dat hy sy skuld sal betaal. Dalk gebeur dit dat jou buurman arm is, en al wat hy vir jou kan gee, is die klere aan sy lyf. Dan mag jy nie sy klere oornag hou nie. Gaan gee die klere terug wanneer die son sak, want hy slaap in sy klere. Dis al wat hy het om hom warm te maak. Hy sal jou voorspoed toewens as jy sy klere teruggee. En die Here sal ook sien wat jy doen en dit sal goed wees in sy oë. “Moenie iemand wat elke dag teen betaling werk, sleg behandel nie. Dit maak nie saak of hy ’n mede-Israeliet is of iemand wat aan ’n ander volk behoort nie. Betaal elke dag voor die son sak die lone van die mense wat vir jou werk. Hierdie mense is arm en het niks anders om van te leef nie. Hulle maak staat op die bietjie geld wat jy hulle gee om te kan eet. Anders roep hulle nou-nou die Here aan omdat hulle honger hulle deur die nag wakker hou. En die Here luister na arm mense. Dan straf die Here jou oor hierdie slegte ding wat jy gedoen het. “Ouers mag nie doodgemaak word as hulle kinders slegte dinge aanvang nie. En kinders mag nie doodgemaak word oor hulle ouers se slegte dade nie. Net die persoon wat die oortreding begaan het, mag doodgemaak word. “Jy moet die vreemdeling wat by jou bly en die weeskind goed behandel. Jy moet sorg dat daar reg aan hulle gedoen word. Jy mag nooit die weduwee se klere van haar af wegvat om seker te maak dat sy iets wat sy by jou geleen het, terugbring nie. Onthou dat julle slawe in Egipte was. En dink daaraan hoe goed die Here toe vir julle was. Hy het julle gered. Daarom beveel ek jou om so met vreemde mense te werk soos die Here aan jou gedoen het. “Sê nou jy is besig om die oes op jou lande in te bring. Jy kom agter dat jy van die graan op die land vergeet het. Moenie teruggaan om dit te gaan haal nie. Nee, los die graan wat agterbly vir die vreemdelinge en die weeskinders en die weduwees. Hulle het niks anders om van te leef nie. As jy dit doen, sal die Here vir jou voorspoed gee in alles wat jy doen. Hy hou van vrygewige mense. Maak net so as jy die olywe van jou olyfbome afslaan. Moenie nog ’n keer tussen die bome deurloop om te kyk of daar nie dalk ’n olyf agtergebly het nie. Los party van die vrugte doelbewus aan die bome sodat die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees dit kan kom pluk. Maak ook so wanneer jy druiwe in jou wingerd pluk. Moenie nog ’n keer deur die wingerd gaan en al die trosse oes wat agtergebly het nie. Los van die beste druiwe agter sodat die vreemdelinge en weeskinders en die weduwees dit kan vat. Hulle moet daarvan leef. Onthou dat jy ook ’n vreemdeling was toe jy in Egipte gebly het. Jy het sonder betaling daar gewerk. En die Here het vir jou gesorg. Daarom sê ek vandag vir jou wat jy moet doen: sorg vir die vreemdelinge.” “Sê nou twee mans vat mekaar hof toe oor iets waaroor hulle nie saamstem nie. Die landdros bepaal wie reg is. Hy sê hierdie man wat reg gedoen het, is onskuldig en daardie man wat verkeerd gedoen het, is skuldig. Dalk bepaal hy dat die ander man wat skuldig is, as straf met ’n sambok geslaan moet word. Wanneer hy geslaan word, moet die landdros by wees. Die man moet voor die landdros op die grond gaan lê. Dan moet hulle hom slaan. Die landdros moet tel dat hy slegs die aantal houe kry wat die hof hom opgelê het. Onder geen omstandighede mag jy iemand meer as 40 houe met ’n sambok laat slaan nie. As jy iemand meer as 40 houe slaan, verneder jy hom voor ander mense. Dis nie ’n goeie ding nie. “Wanneer jy ’n os gebruik om jou graan uit te trap, mag jy nie sy bek toebind sodat hy nie van die graan kan vreet nie. “Twee broers bly dalk saam. Een van hulle gaan dood sonder dat sy vrou vir hom ’n seun gegee het. Sy vrou mag dan nie met iemand trou wat nie familie van haar oorlede man is nie. Nee, sy moet eerder met haar oorlede man se broer trou. Haar nuwe man moet dan ’n seun by haar hê wat na haar oorlede man vernoem kan word. Haar eerste seun by haar nuwe man is dan eintlik die seun van haar eerste man. Só sal haar oorlede man nie deur die volgende geslag vergeet word nie. Sy naam sal in Israel onthou word. “Maar sê nou die tweede broer weier om met sy oorlede broer se weduwee te trou? Dan moet die weduwee na die ingang van die stad gaan waar die leiers van die stad sit. Sy moet vir hulle sê: ‘My oorlede man se broer weier om met my te trou en ’n kind by my te hê sodat my oorlede man onthou kan word. Hy weier om die regte ding te doen.’ “Dan moet die leiers van die stad hierdie man roep en met hom praat. Hulle moet vir hom verduidelik hoekom dit belangrik is dat hy met sy oorlede broer se weduwee moet trou. Maar as hy weier om te doen wat hulle vir hom sê, en hy weier om met hierdie vrou te trou, moet die weduwee oor hom stap waar hy plat op die grond lê. Sy moet sy sandaal uittrek en in sy gesig spoeg. Dan moet sy sê: ‘Dis wat gebeur met ’n man wat weier om ’n seun te hê by sy oorlede broer se weduwee.’ “Agterna moet al die mense van Israel na hierdie familie verwys as ‘die familie van die man wie se sandaal uitgetrek is’. “Sê nou twee mense van jou volk baklei. Die een man se vrou probeer haar man help om die geveg te wen en gryp die ander man aan sy skaamdele. Dan moet jy haar hand afsny. Jy mag glad nie vir haar jammer wees nie. “Wanneer jy iets weeg om dit te verkoop, moet jy altyd seker maak dat jou skale reg werk. Jy mag nie mense bedrieg deur iets aan hulle te verkoop wat nie is soos jy gesê het dit is nie. Jy moet akkuraat en eerlik wees as jy iets verkoop. As jy in al jou besigheidstransaksies eerlik is, sal jy lank lewe in die land wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly. As jy oneerlik is en mense in besigheidstransaksies bedrieg, doen jy iets wat baie sleg is. Onthou, die Here jou God sien dit raak. “Onthou altyd wat die inwoners van Amalek aan julle gedoen het toe julle uit Egipte weggetrek en hier aangekom het. Hulle het julle aangeval toe julle op julle weerloosste was, toe julle honger en moeg was van die trek deur die woestyn. Hulle het almal wat langs die pad uitgesak het omdat hulle gedaan was, doodgemaak. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen respek vir God gehad het nie. Daarom moet jy wag totdat jy die hele land oorwin het wat die Here jou God vir jou as ’n besitting gee om in te gaan woon. Dan moet jy die Amalekiete aanval en geen genade aan hulle betoon nie. Jy moet hulle vernietig. Niemand moet agterna aan hulle dink nie. Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.” “Jy gaan binnekort in die land kom wat die Here jou God vir jou gee. Daar moet jy jou tuismaak. Dan moet jy elke jaar die eerste deel van die oes neem wat jy in daardie land plant en oes, en dit in ’n mandjie pak. Dan moet jy daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om in te bly. Dit is die plek waar jy die Here moet dien. Gaan dan na die man wat daar in die diens van die Here staan. Sê vir hom: ‘Ek het ’n geskenk vir die Here my God gebring, want dit is Hy wat my in hierdie land gebring het, en dis Hy wat hierdie land vir my gegee het. Hy het mos al vir my oupagrootjies belowe dat Hy dit sal doen.’ “Die man wat in die huis van die Here werk, moet dan die mandjie neem met die geskenk in. Dan moet hy dit voor die altaar neersit, voor die Here jou God. Jy moet dan daar waar die Here jou God self teenwoordig is, sê: ‘My oupagrootjie Jakob was ’n Arameër wat oor die aarde getrek het omdat hy geen grond van sy eie gehad het nie. Toe het hy in Egipte gaan bly. Sy familie was klein. Hulle was ’n handjie vol mense. Maar in Egipte het hulle baie geword. Hulle het ’n groot nasie geword wat baie sterk was. Die Egiptenaars het dit gesien. Toe het hulle ons sleg behandel. Hulle het ons verneder en ons sonder betaling hard laat werk. Toe het ons na die Here geroep. Ons het Hom gevra om ons van die Egiptenaars te red. Hulle het ons baie hard laat werk sonder om ons te betaal en hulle het ons verdruk. Maar God is die God van ons oupagrootjies en oumagrootjies. Hy het gehoor toe ons roep. Hy het gesien hoe sleg ons behandel word en hoe swaar ons daar kry. Toe het die Here ons uit Egipte gered. Hy het wonderlike dinge gedoen, want Hy is baie sterk. Die dinge wat Hy gedoen het om ons te red, was net ongelooflik! Toe het Hy ons na hierdie plek gebring. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n goeie land. Hier is meer as genoeg om van te leef. Daarom, Here, bring ek hierdie geskenk vir U. Dis maar net ’n ietsie van die baie wat U vir my gegee het. Ek bring dit van die eerste oes wat ek vanjaar in hierdie land afgehaal het.’ “Dan moet jy die geskenk voor die Here jou God neersit. Jy moet laag voor die Here buig en Hom dien. As jy klaar is, moet jy teruggaan na waar jy bly. Dan moet jy daar ’n groot fees vier omdat die Here jou God goeie dinge vir jou en jou huismense gegee het. Wees bly, want Hy is goed vir jou. Onthou net om ook vir die mense wat in die huis van die Here jou God werk, die kleinkinders van Levi, iets saam te bring. Doen ook goed aan die vreemdelinge. Deel die goeie dinge wat die Here vir jou gegee het met hulle. Laat hulle saam met jou feesvier en bly wees.” “Jy moet elke derde jaar ’n spesiale tiende van jou oes vat. Hierdie tiende behoort aan die Here. Jy moet dit vir die mense wat in die huis van die Here werk en vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gee. As jy só maak, sal hulle ook genoeg hê om te eet. Dan sal niemand in een van jou stede honger ly nie. Jy moet hardop sê: ‘Ek het die geskenk uit my huis wat aan die Here behoort, gevat. Ek het dit vir die mense wat die Here dien en in sy huis werk, asook vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gegee. Ek het alles gedoen nes U my beveel het, Here. Ek het niks wat U my beveel het, vergeet nie. Ek het niks daarvan geëet terwyl ek hartseer was omdat iemand na aan my dood is nie. Ek het ook nie hierdie offer vir U gebring toe ek nie heeltemal rein was nie. En ek het niks daarvan as ’n offer vir dooie mense gegee nie. Ek het alles gedoen wat die Here my beveel het. Ek het nie vergeet wat U vir my gesê het nie. Daarom, Here, laat daar nou ’n glimlag op u gesig wees as U na my kyk. Kyk na my daar van die plek af waar U bly en maak u volk Israel voorspoedig in alles wat hulle doen. Laat hulle land ook oorgenoeg hê sodat al die mense in die land genoeg het om te eet. U het mos ons oupagrootjies en oumagrootjies belowe dat U dit sal doen.’” “Die Here jou God sê vandag vir jou dat jy haarfyn alles moet doen wat Hy jou beveel. Jy moet presies maak soos Hy vir jou sê. Jy moet dit alles doen sonder om vir een oomblik jou eie kop te volg. Jy het mos gesê dat die Here jou God is. Jy het vandag gesê dat Hy jou volk se Regeerder moet wees. En jy het belowe dat jy alles sal doen wat Hy sê. Jy sal doen wat Hy jou beveel. Daarom verklaar die Here vandag dat jy sy volk is. Julle behoort aan Hom. En julle is baie kosbaar vir Hom. Hy sal julle oppas. Hy belowe dat Hy dit sal doen. Julle moet net alles doen wat Hy julle beveel. As julle dit doen, maak Hy julle groter as enige ander nasie op aarde. Dan sal almal na julle opsien. Hulle sal vertel hoe beroemd en sterk en ryk julle is. Julle is ’n nasie wat eenkant gesit is om die Here te dien. So belowe die Here jou God.” Toe het Moses en al die leiers van die volk gesê: “Israel, jy moet alles doen wat ek vandag vir jou sê. Wanneer jy oor die Jordaan trek en in die land ingaan wat die Here jou God vir jou gee as jou eie land, moet jy daar ’n klomp klippe neersit as ’n gedenkteken. Jy moet die klippe wit verf. Skryf dan alles op hierdie klippe neer wat die Here julle beveel het, wat sy ooreenkoms met julle is. Ek herhaal: binnekort gaan julle oor die rivier die land in wat die Here julle God vir julle gee. Dit is ’n land waarin daar oorgenoeg is van alles. Dis net soos die Here julle oupagrootjies en oumagrootjies belowe het. Wanneer jy oor die Jordaan gaan, moet jy hierdie stene op Ebalberg pak. En jy moet hulle wit verf, net soos ek julle vandag beveel. Dan moet jy daar ’n altaar van klippe bou vir die Here jou God. Jy moet klippe gebruik wat jy in die veld optel. Hulle mag nie gekap wees nie. Moenie die klippe op enige manier kap nie. Op hierdie altaar moet jy offers aan die brand steek vir die Here jou God. Bring daar offers vir die Here sodat Hy vir jou vrede kan gee. Hou daar ’n groot fees en eet en wees bly omdat die Here jou God saam met jou is. Hy is tussen julle. Onthou om alles wat die Here julle beveel het, duidelik op die klippe neer te skryf sodat jy dit maklik kan lees.” Toe het Moses en al die mense wat in die huis van die Here werk, die kleinkinders van Levi, vir Israel gesê: “Israel, wees stil. Luister baie mooi! Vandag het julle die volk van die Here julle God geword. Daarom moet julle doen wat die Here julle God julle beveel. Julle moet alles doen wat ek vandag vir julle sê.” Daardie selfde dag het Moses ook nog vir die volk gesê: “Wanneer julle oor die Jordaan gaan, moet party stamme op die Gerisimberg gaan staan. Simeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin moet aan daardie kant op die Gerisimberg gaan staan. Hulle moet vertel hoe die Here die volk voorspoedig gaan maak as hulle doen wat Hy hulle beveel. Die stamme van Ruben en Gad en Aser en Sebulon en Dan en Naftali moet op die Ebalberg aan hierdie kant gaan staan. Hulle moet hardop sê hoe die Here die mense gaan straf wat nie doen wat Hy sê nie. “Die Leviete moet dan vir die volk Israel skree: ‘Dit sal sleg gaan met elkeen wat vir hom ’n beeld van ’n afgod maak, dit êrens neersit waar ander dit nie kan sien nie, en dan voor daardie beeld buig en dit aanbid. Afgode is mensewerk. Hulle is walglik vir die Here. Hy kan so iets nie verdra nie.’ “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat nie sy pa of ma goed behandel nie. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met elkeen wat van sy buurman grond steel deur die grensdrade stilletjies te verskuif. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat ’n blinde man op die verkeerde pad lei sodat hy verdwaal. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat vreemdelinge en weeskinders en weduwees sleg behandel. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat by sy pa se vrou slaap, want hy het nie sy pa geëer nie. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat met ’n dier seks het. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat by sy suster slaap, of sy nou sy pa of sy ma se dogter is. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat by sy skoonma slaap. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat ’n ander mens stilletjies doodmaak. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat bereid is om ’n ander mens dood te maak omdat hy daarvoor betaal word. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’ “Dit sal sleg gaan met elkeen wat nie alles doen wat die Here gesê het julle moet doen nie, en wat nie gehoorsaam is aan wat Hy beveel nie. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’” “Jy moet baie goed luister na wat die Here jou God vir jou sê om te doen. As jy alles doen presies nes Hy vir jou sê en jy gehoorsaam is om alles te doen wat Hy jou beveel, sal dit goed gaan met jou. Die Here sal jou belangriker maak as enige ander nasie op aarde. Jy sal baie voorspoedig wees in alles wat jy aanpak. Jy sal ryk word omdat die Here jou ryk maak. Hy sal baie dinge vir jou doen: Hy sal jou voorspoedig maak as jy in die stad bly of op die platteland boer. “Hy sal vir jou baie kinders gee en jou landerye sal elke jaar groot oeste hê. “Jou mandjies waarmee jy die oes insamel, sal elke jaar oorloop van al die vrugte wat die Here vir jou sal gee. Hy sal sorg dat jy meer brood sal hê as wat jy kan eet. “Die Here sal jou voorspoedig maak waar jy ook al gaan. Dit sal heeltyd net goed gaan met jou. “Die Here sal jou vyande doodmaak as hulle besluit om jou aan te val. Hulle sal uit een rigting kom om jou aan te val, maar hulle sal in sewe rigtings weghardloop! “Die Here sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen. Jy sal nie genoeg skure hê om alles op te gaar wat Hy vir jou gaan gee nie. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy vir jou gee. “As jy alles doen wat die Here jou God jou beveel, sal Hy Israel as sy eie volk eenkant sit. Julle sal net aan Hom behoort en julle sal Hom dien. Hy het mos belowe dat Hy dit sal doen. Al die ander nasies sal erken dat julle die Here se volk is. En hulle sal baie bang wees vir julle. “Die Here sal vir jou baie van al die goeie dinge gee in die land wat Hy vir julle oupagrootjies belowe het om vir julle te gee. Julle sal baie kinders hê en baie skape en beeste, en julle sal elke jaar rekordoeste hê. “Die Here sal vir julle reën gee elke keer as julle dit nodig het. Waar Hy bly, is daar baie skatte. En Hy sal sy skatte vir julle gee. Hy sal julle voorspoedig maak in alles wat julle doen. “Julle sal vir baie nasies leen, maar julle sal nie nodig hê om by enigiemand enigiets te leen nie. “As julle baie mooi luister wat die Here julle God vir julle beveel en julle doen presies wat Hy sê, sal Hy julle die belangrikste op aarde maak. Julle sal oor ander nasies heers. Julle sal altyd die sterkste wees. Wees baie versigtig dat julle niks nalaat wat die Here wil hê julle moet doen nie. Wees veral versigtig om nie voor ander gode neer te buig en hulle te aanbid nie.” “As jy weier om te doen wat die Here jou God jou beveel, sal teëspoed jou tref. Probleme sal jou oorweldig. “Dit sal dan sleg gaan met jou as jy in die stad bly, of as jy op die platteland boer. “Jou mandjies sal leeg wees as jy die oes moet inbring omdat daar geen vrugte sal wees om te oes nie. Jou broodblik sal dolleeg wees. Jy sal niks hê om te eet nie. “Jy sal ook min kinders hê en jou landerye sal nie oeste op hê nie. Jou skape sal nie lammers hê nie en jou beeste sal nie kalwers hê nie. “Dit sal baie sleg met jou gaan in alles wat jy doen. “Die Here sal self teëspoed en moeilikheid oor jou pad stuur. Niks wat jy doen, sal uitwerk nie. Dit sal so aanhou totdat jy uiteindelik vernietig en bankrot is. Dit gebeur omdat jy slegte dinge gedoen het. Jy het die Here se pad verlaat. “Die Here sal siektes stuur wat jou mense sal uitroei. Hulle sal doodgaan totdat daar later niemand meer in die land oorbly nie, die land wat jy binnekort sal ingaan om as jou eie land vir jou te vat. Die Here sal tering en inflammasie en koorssiektes stuur om jou lewe te vergal. Jou land sal ly onder hittegolwe en oorloë. Jou oeste sal vergaan omdat daar siektes en roes onder die plante kom. Hierdie moeilikhede sal al agter jou aanloop totdat jy heeltemal vernietig is. Jy sal nie reën kry nie. Die lug sal so hard soos koper wees en die aarde so hard soos yster. Jy sal niks kan plant nie. Die Here sal die bietjie reën wat val in stof verander en dit sal oor jou waai totdat jy geheel en al uitgeroei is. “Die Here sal jou vyande in staat stel om jou te wen. Jy sal jou vyande uit een rigting aanval, maar hulle sal jou in sewe rigtings jaag soos jy weghardloop. Al die mense van die aarde sal die kop oor jou skud. Jy sal bewe, so bang is jy vir ander nasies. Die voëls en die wilde diere sal julle lyke vreet en niemand sal hulle wegjaag nie. “Die Here sal jou teister met die siektes wat jy in Egipte geken het. Jy sal kranksinnig en blind word en van jou kop af raak. Jy sal helder oordag rondtas en oor alles val, net soos ’n blinde mens wat niks kan sien nie. Alles wat jy doen, sal misluk. Jy sal verdruk word. En jy sal beroof word. Niemand sal aanbied om jou te help nie. “Jy sal aan ’n vrou verloof wees, maar hoor dat ’n ander man haar verkrag het. Jy sal ten duurste ’n huis bou, maar iemand anders sal daarin gaan bly. Jy sal ’n wingerd aanlê, maar iemand anders sal die vrugte daarvan geniet. Hulle sal jou osse voor jou oë slag, maar hulle sal nie eens aanbied om vir jou ’n stukkie van die vleis te gee nie. Hulle sal jou donkie wegjaag en jy sal hom nooit weer sien nie. Jou vyande sal jou skape vir hulleself vat. Niemand sal jou help as hulle jou besteel en beroof nie. “Jy sal sien hoe jou seuns en dogters deur jou vyande weggevat word om sonder betaling vir ander te gaan werk, en jy sal niks daaraan kan doen nie. Jou hart sal breek soos jy na hulle verlang. Maar niks wat jy doen, sal iets aan die situasie verander nie. “’n Vreemde nasie van wie jy nog nooit gehoor het nie, sal die oeste opeet waaraan jy so hard gewerk het en wat jou so baie geld gekos het. Hulle sal jou aanhoudend sleg behandel en jou verdruk. Dit sal vir jou voel of jy mal word omdat alles altyd net sleg gaan met jou. Tragedie op tragedie wag op jou as jy nie na die Here luister nie. Boonop sal die Here swere oor jou hele lyf laat uitbreek, van jou kop tot jou tone. Niks sal daarvoor help nie. Die sere sal by jou knieë en jou bene begin.” “Jy en die koning wat oor jou heers, sal as gevangenes weggeneem word na ’n ver land as jy nie na die Here luister nie. Hy sal daarvoor sorg. Jy en jou voorouers het nie eens geweet dat daar so ’n ver land bestaan nie. En as jy ’n gevangene in daardie vreemde land is, sal jy gode van hout en klip moet aanbid. Mense sal skrik as hulle van jou hoor. Hulle sal spot met jou. Die mense wat in daardie ver land bly, sal nie kan glo dat die Here dit so sleg met julle laat gaan het nie. Hulle sal vir julle lag. “Jy sal elke jaar baie plant, maar min oes, want sprinkane sal die plante afvreet. Jy sal wingerde plant en moeite doen om die plantjies nat te gooi, maar jy sal nie die druiwe eet of die wyn drink wat daarvan gemaak word nie. Wurms sal die druiwestokke afvreet, en hulle sal vrek. Jy sal reg oor jou land olyfbome plant, maar jy sal nooit die olyfolie self kan gebruik nie, want die bome sal hulle vrugte afgooi net voor dit ryp word. Jy sal seuns en dogters hê, maar hulle sal nie by jou bly nie. Jou vyande sal hulle as gevangenes wegneem om sonder betaling te gaan werk. Sprinkane sal jou land aanval en hulle sal alles opvreet. Daar sal niks van die bome of die gras of jou oeste oorbly nie. Die vreemdelinge wat tussen jou bly, sal sterker word as jy en hulle sal meer besittings hê as jy. Maar jy sal al swakker en swakker word. Jy sal by hulle geld leen, en hulle sal niks van jou nodig hê nie. Hulle sal belangriker word as jy. “As jy weier om te doen wat die Here jou God vir jou sê en jy luister nie na wat Hy jou beveel nie, sal al hierdie teëspoed oor jou kom. Moeilikheid sal jou vernietig. Hierdie moeilikheid is eintlik waarskuwings vir jou en jou kinders en jou kleinkinders. Jy het nie die Here met vreugde en entoesiasme gedien nie. Dis Hy wat alles vir jou gegee het wat jy het, wat goed vir jou gesorg het. Daarom sal jy vir jou vyande moet werk. Die Here sal hulle teen jou stuur. Jy sal honger en dors wees en sonder klere. Jy sal niks hê wat jy nodig het nie. Jou vyande sal jou sleg behandel totdat jy uiteindelik vernietig is en daar niks van jou oorbly nie. “Die Here sal ’n nasie van ver af bring om teen jou te veg. Hulle sal skielik op jou toesak soos ’n arend wat uit die lug uit op sy prooi afduik. Jy sal hierdie nasie se taal nie verstaan nie. Hulle sal wrede mense wees wat jou voor die voet uitroei en vir niks of niemand jammer is nie. Hulle sal nie eens die oumense of die klein kindertjies spaar nie. Hulle soldate sal so baie wees dat hulle al jou vee en al jou oeste nodig sal hê om te eet. En jy sal van honger doodgaan. As hulle met jou klaar is, sal jy niks nuwe wyn of olyfolie of kalwers of lammers oorhê nie. Hulle sal jou vernietig. “Hulle sal jou stede aanval tot hulle al die mure om die stede afgebreek het. Jy het mos gedink jy is veilig omdat daar sulke hoë mure om jou stede is! Wel, daar sal nie ’n enkele stad bly staan in die land wat die Here vir jou gegee het om in te woon nie. As hulle om jou stede saamtrek sodat jy nie kan ingaan of uitgaan nie, sal die kos later opraak. Dit sal dan so sleg gaan dat julle julle eie seuns en dogters sal moet eet om te oorleef. Dit is die seuns en dogters wat die Here vir julle gegee het. Die saggeaardste man onder julle sal dan nie omgee vir sy eie broer of vir sy vrou wat hy baie liefhet, of vir sy kinders wat nog leef nie. Hy sal weier om vir hulle ’n stukkie te gee van die vleis wat hy eet; die vleis van sy eie kinders. Hy sal baie honger wees en hy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd nie. Die saggeaardste en mees verfynde vrou onder julle, wat voorheen so baie van haarself gedink het dat sy nie eens haar voete wou vuil maak deur in ’n stofstraat te stap nie, sal wreed word teenoor haar eie man en haar eie seun en dogter. Sy sal haar nageboorte en haar pasgebore baba wegsteek sodat hulle dit nie saam met haar kan eet nie. Sy sal die baba eet waar niemand haar kan sien nie. Sy sal niks anders hê om te eet in hierdie tyd wanneer julle vyande julle stede aanval en julle van die honger doodgaan nie.” “Jy weier dalk om te doen wat die Here julle beveel het en wat in hierdie boek wat jy in jou hand vashou, opgeskryf is. Jy besluit dalk om nie die Here wat baie sterk is, te dien of aan Hom respek te bewys nie. Dan sal die Here jou en jou kinders met verskriklike rampe en ellendes straf. Die rampe sal aanhou en aanhou. Dit sal al slegter met jou gaan. Jy sal aan ongeneeslike kankers ly. Ja, die Here sal al die siektes wat jy in Egipte gesien het, oor jou bring. Jy was so bang vir hierdie siektes. Nou sal jy daarvan doodgaan. Die Here sal elke siekte en plaag wat daar op aarde is, gebruik om jou lewe in hel te verander. Selfs die siektes wat nie in hierdie boek genoem word nie, sal jou tref. Dit sal aanhou totdat jy later heeltemal uitgeroei is. Selfs al is jou mense so baie soos die sterre in die hemel, sal daar baie min van hulle oorleef omdat jy nie wou luister toe die Here jou God met jou gepraat het nie. “Vroeër was dit vir die Here lekker om jou te help. Hy het dit geniet om goed aan jou te doen. Jy het voorspoed beleef en jou volk het groot geword. Maar nou sal dit vir die Here lekker wees om jou te vernietig. Jy sal verdwyn uit die land waar jy nou gaan bly. Die Here sal jou uit daardie land wegvat en jou oor al die lande wat daar op die aarde is, verstrooi. In daardie vreemde lande sal julle vreemde gode moet aanbid waarvan julle en julle oupas nog nie eens gehoor het nie. Daardie mense se gode is van hout en klip gemaak. Tussen daardie mense sal julle nooit veilig wees nie. Die Here sal maak dat julle heeldag bang en benoud sal wees. Julle oë sal ingee en swak word. En julle sal so wanhopig word dat julle nie meer kans sien om die toekoms in te gaan nie. Julle sal nie weet of julle môre nog gaan leef nie. Julle sal dag en nag bang wees. Niks sal vir julle hoop bring nie. Julle sal twyfel of julle môre gaan sien. In die oggend sal julle wens dat dit al aand is. En in die aand sal julle wens dat dit al weer môre is. Julle sal wens die tyd gaan verby omdat al wat julle heeldag sien, net moeilikhede en probleme is. Dit is die vreeslikste dinge wat oor jou sal kom. Dan sal die Here jou terugstuur na Egipte. Hy het belowe dat jy nooit weer na die groot ellende van Egipte sal teruggaan nie. Maar jy sal gaan en daar sal hulle julle aan mense probeer verkoop wat julle hard sal laat werk, maar nooit vir julle enige betaling sal gee nie. Maar daar sal nie eens iemand wees wat belang sal stel om julle te koop nie.” Dit is alles wat die Here Moses beveel het om vir die Israeliete te vertel, alles wat Hy wil hê hulle moet doen. Die Israeliete was toe in die land Moab. Hy het hulle hierdie opdragte gegee saam met die ander opdragte wat Hy by Horeb vir hulle gegee het. Toe het Moses al die Israeliete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het mos met julle eie oë gesien wat die Here in Egipte aan die farao, die koning van Egipte, gedoen het. En ook aan die mense wat vir die farao werk en vir al die mense in daardie land. Die Here het sy groot krag gewys toe Hy julle gered het. Hy het baie groot wonders gedoen. Maar tot vandag toe het die Here nie vir julle verstand gegee sodat julle kan verstaan nie, of oë sodat julle kan sien of ore sodat julle kan hoor nie! Vir 40 jaar het ek julle deur die woestyn gelei. Het julle nie agtergekom dat julle skoene nie uitgetrap raak en julle klere nie stukkend gaan nie? Julle het nie brood gehad om te eet of wyn of ander sterk drank gehad om te drink nie. Die Here het self vir julle kos gegee. Hy het dit gedoen sodat julle kon leer dat Hy, en Hy alleen, die Here julle God is. “Toe ons hier in Kanaän aanland, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek en teen ons kom veg. Maar ons het hulle verslaan. Ons het hulle land gevat en vir die stamme van Ruben en Gad gegee, en vir die een helfte van die stam van Manasse. Hulle het hierdie grond geërf. “Daarom moet julle nou stiptelik alles doen wat die Here julle beveel het. As julle dit doen, sal julle voorspoedig wees in alles wat julle aanpak. Julle staan vandag almal voor die Here julle God. Julle leiers en julle landdroste en julle offisiere, almal wat aan Israel behoort, is hier. Saam met julle is julle kinders en julle vroue en die vreemdelinge wat by julle is om vir julle te werk. Julle staan vandag hier om ’n ooreenkoms met die Here julle God aan te gaan. Die Here sluit hierdie ooreenkoms vandag met julle. Hy belowe dat Hy sal doen wat Hy in die ooreenkoms onderneem om te doen. Hy wil julle vandag as sy eie volk aanneem. Hy wil julle God wees. Hy het immers belowe dat Hy dit sal doen. Ja, Hy het al vir Abraham en Isak en Jakob belowe dat Hy dit gaan doen. Maar julle is nie die enigste mense met wie Hy hierdie ooreenkoms vandag aangaan nie. Die Here sluit hierdie ooreenkoms met almal wat vandag hier voor Hom staan, maar ook met al julle kleinkinders en agterkleinkinders.” “Jy mag nooit vergeet hoe jy in Egipte geleef het nie. En jy mag ook nie vergeet hoe jy deur die lande van al die ander nasies getrek het nie, al die nasies wat jou vyande was. Julle het gesien watter afskuwelike afgode hulle dien. Hulle maak vir hulleself afgode van hout en klip en silwer en goud. Die Here bepaal in hierdie ooreenkoms wat Hy vandag met jou sluit dat geen man of vrou of enige stam van Israel ooit mag wegdraai van die Here julle God om voor sulke afgode te gaan buig nie. Julle mag nie toelaat dat daar in julle midde ’n wortel opskiet wat ’n giftige vrug dra nie. Dit is wat sal gebeur as julle die ander nasies se afgode dien. Niemand wat vandag na my luister, moet dink dat hy nie kan afdwaal nie. Jy moenie gerus word en dink jy is op die regte pad nie. Jy moenie dink alles is reg nie, al loop jy jou eie pad en al doen jy net wat jy wil. Jy sal nie vrede hê nie. Nee, jy gaan vir seker vernietig word. Die Here sal jou straf. Jy sal baie swaarkry. Die Here sal sulke mense nie verskoon nie. Hy sal woedend wees oor hulle slegte dade. Hy gee immers om vir sy mense. Hy het hulle so lief dat Hy hulle net vir Homself wil hê. Al die teëspoed en moeilikheid wat in hierdie boek opgeteken is, sal sulke mense tref. Die Here sal hulle vernietig. Niemand sal eens agterna weet dat daar sulke mense soos hulle was nie. Die Here sal hierdie mense eenkant sit, weg van die ander stamme van Israel se mense. Dan sal Hy hulle straf. Al die teëspoed waarvan hierdie boek vertel, sal oor hulle kom. “Julle kleinkinders en agterkleinkinders en vreemdelinge wat van ander lande af kom en later in hierdie land aankom, sal sien hoe verwoes julle land is. Hulle sal sien hoeveel siektes die Here teen die mense van hierdie land gebring het. Hulle sal sien dat die hele land afgebrand is. Al wat oorgebly het, is swael en sout. Alles in julle land is onvrugbaar. Niks wil groei nie. Nie eens gras kom meer op nie. Julle land sal soos Sodom en Gomorra wees, soos Adma en Sebojim. Die Here het mos hierdie stede verwoes toe die inwoners aangehou het om slegte dinge te doen. Hulle het nie ’n gedagte aan God gegee nie. Die Here het toe kwaad geword en hulle met wortel en tak uitgeroei. Die nasies wat rondom julle bly, sal dan vra: ‘Hoekom het die Here iets so verskrikliks met hierdie land gedoen? Wat het Hom so woedend gemaak dat Hy so opgetree het?’ “Dan sal daar vir hulle gesê word: ‘Dit het gebeur omdat die inwoners van hierdie land die ooreenkoms geïgnoreer het wat hulle God met hulle gesluit het. Hulle het hulle nie gesteur aan wat hierdie ooreenkoms sê die Here van hulle verwag nie. Dit is hierdie God wat hulle uit Egipte gebring het, soos Hy hulle oupagrootjies belowe het Hy sal doen. Hulle het weggedraai van die Here en ander gode gaan dien. Dis hoekom die Here so kwaad vir hulle geword het en hoekom Hy hulle land verwoes het. Hy het al die teëspoed oor hulle gebring waaroor Hy hulle in hierdie boek gewaarsku het. Die Here was so kwaad en ontsteld dat Hy die mense van hierdie land uit hulle land gegooi het. Hy het hierdie mense as gevangenes laat wegvoer na ver en vreemde lande. En dis waar hulle vandag nog leef.’ “Daar is geheime dinge wat net die Here ons God weet. Hy het dit nie aan ons geopenbaar nie. Maar die dinge wat Hy wel aan ons geopenbaar het, moet ons doen. Hy het vir ons en ons kinders en kleinkinders gewys wat Hy wil hê ons moet doen. Ons moet lewe soos Hy wil hê ons moet.” “Sê nou maar al hierdie dinge gebeur met jou. Jy beleef die voorspoed wat die Here beloof het, maar jy beleef ook hoe dit met jou sleg gaan. Dan sit jy op ’n dag en dink diep na oor hoe die Here dit met jou laat sleg gaan. Jy sit daardie dag in ’n vreemde land, ver van jou eie land af. Jy het daar beland omdat die Here jou as ’n gevangene in jou vyande se hand oorgegee het. Hy het mos belowe dat Hy dit gaan doen. Dan besef jy watter groot fout jy gemaak het. En jy kom terug na die Here jou God. Jy en jou kinders besluit dan om alles te doen net soos die Here julle beveel het. Julle maak dan soos Hy vir julle sê. Dan sal die Here dit weer voorspoedig met jou laat gaan. Hy sal aan jou dink, daar waar jy in die ver land sit. Hy sal jou bymekaarmaak waar jy tussen jou vyande moet woon en sonder betaling vir hulle moet werk. Hy sal jou red en na jou eie land toe terugbring. Selfs al het die Here jou verstrooi tot by die uiteindes van die aarde, sal Hy jou weer gaan haal. Hy sal jou terugbring na die land wat Hy aan jou oupagrootjies en oumagrootjies gegee het. En daardie land sal weer aan jou behoort. Dan sal die Here jou selfs nog meer voorspoedig maak as voorheen. Jou volk sal groter wees as voor die Here jou uit jou land weggejaag en aan jou vyande oorgegee het. “Dan sal die Here jou God jou hart verander. En Hy sal die harte van jou kinders en kleinkinders verander. Julle sal die Here liefhê bo enigiets of enigiemand anders. As ’n mens die Here eerste in jou lewe stel, laat Hy jou lewe! Al die slegte goed wat die Here met jou laat gebeur het, sal dan met jou vyande gebeur. Dit sal sleg gaan met al die mense wat jou gehaat het en sleg aan jou gedoen het. Daardie dag sal jy presies doen wat die Here beveel het. Dan sal jy alles doen wat ek vandag vir jou gesê het. [9-10] Dan sal die Here jou God jou weer voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee. En Hy sal vir jou baie skape en beeste gee. Jy sal rekordoeste op jou lande hê. Want dis vir die Here lekker as jy doen wat Hy vir jou sê. Hy is bly en opgewonde oor jou as jy haarfyn alles doen wat in hierdie boek opgeteken staan. Daarom, draai terug na die Here toe. Loop agter Hom aan met alles wat in jou is.” *** “Wat ek julle vandag beveel om te doen is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En julle kan dit ook doen. Wat die Here van julle vra, is nie so moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie. Wat die Here van jou vra, kan jy doen. Sy opdragte is ook nie ver oor die see sodat jy iemand moet soek om op ’n skip te klim en oorsee te vaar om dit te gaan soek nie. Jy kán lewe soos die Here van jou verwag. Wat Hy van jou vra, is eintlik baie naby aan jou. Ek het dit vir jou in jou hand gegee. Jy kan daaroor praat. Ja, jy ken dit al teen dié tyd. Jy is in staat om te lewe soos die Here van jou verwag. “Maar luister nou baie mooi. Ek stel julle vandag voor die keuse. Julle kan self kies. Julle moet kies wat julle wil hê. Wil julle hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, of kies julle vandag teëspoed? Kies tussen lewe en dood! Ek het vandag mos vir jou gesê wat jy moet doen. Jy moet die Here jou God liefhê. Jy moet Hom eerste in jou lewe stel. En jy moet noukeurig alles doen wat Hy sê jy moet doen. Jy moet agter Hom aanloop. As jy dit doen, sal jy lewe. Die Here sal jou voorspoedig maak. Jy sal ’n groot nasie word. En die Here sal dit met jou goed laat gaan in die land wat Hy vir jou gaan gee. Jy staan op die punt om hierdie land vir jou te vat. “Maar jy kan dalk vandag kies om in die teenoorgestelde rigting te loop. Jy weier om na die Here te luister. Jy gaan soek vir jou afgode en jy buig voor hulle neer. Dan waarsku ek jou vandag dat die Here jou definitief gaan vernietig. Dit sal sleg met jou gaan. Jy sal nie baie lank in hierdie goeie land bly nie. “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders. Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe. Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee. Hy het lank terug al vir Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy hierdie land vir jou sal gee.” Moses het al hierdie dinge vir die mense van Israel gesê. Hy het ook nog gesê: “Ek is nou 120 jaar oud, ’n ou man. Ek kan nie langer julle leier wees nie. In elk geval, die Here het vir my gesê dat ek nie saam met julle as volk oor die Jordaan sal trek nie. Maar die Here julle God sal wel saam met julle gaan. Hy trek voor julle uit deur die Jordaan. En Hy gaan die nasies in die land waarheen julle trek, vernietig. Julle sal daardie land vir julleself gaan vat. Julle gaan daar bly. Josua is van nou af julle leier. Hy gaan saam met julle. Hy sal julle lei, net soos die Here belowe het. Die Here gaan al die nasies wat nou in daardie land bly, vernietig. Hy sal met hulle maak wat Hy met die Amoritiese konings Sihon en Og gemaak het. Die Here sal al hierdie nasies vir julle gee. Jy sal hulle oorwin. En dan moet julle met hulle maak soos ek vir julle verduidelik het. “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Moenie bang wees vir al hierdie mense nie! Die Here jou God trek voor julle uit. Hy sal julle vyande verslaan. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Julle is nie alleen nie. Die Here is saam met julle!” Toe het Moses vir Josua geroep. Hy het toe kliphard vir hom gesê: “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Jy moet hierdie volk die land inlei wat die Here belowe het om vir hulle te gee. Hy het dit reeds vir hulle oupagrootjies belowe. Jy moet hierdie volk lei sodat hulle die nasies in hierdie land kan verslaan. Jy moet hierdie land vir Israel gaan gee. Moenie bang wees nie! En bly altyd vol moed! Die Here gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Jy is nooit alleen nie. Die Here is by jou!” Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee. Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf. Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor. Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.” Toe het die Here met Moses gepraat. Hy het gesê: “Dit het nou tyd geword dat jy moet sterf. Roep vir Josua en sê hy moet saam met jou na die tent toe gaan waar Ek aanbid word. Ek sal daar vir hom sê wat Ek wil hê hy moet doen.” Toe het Moses en Josua na die tent toe gegaan waar die Here aanbid word. Die Here het toe daar aan hulle verskyn. Hulle het gesien hoe ’n groot wolk by die ingang van die tent verskyn. Hulle het dadelik besef dis die Here. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die tyd is baie naby dat jy moet sterf. Jy sal saam met jou oupas en oupagrootjies in die graf wees. Ná jou dood sal hierdie klomp mense vreemde afgode begin aanbid. Hulle sal die gode dien van die mense van die nuwe land wat Ek vir hulle gee. Hulle sal heeltemal van My vergeet. Hulle sal hulle nie meer steur aan die ooreenkoms wat Ek met hulle gesluit het nie. Dan sal Ek kwaad word oor wat hulle doen. Ek sal nie meer by hulle wees nie. En Ek sal nie meer vir hulle sorg nie. Dan sal hulle vernietig word. Hulle sal so swaarkry dat hulle uiteindelik sal sê: ‘Al hierdie rampe en ellendes het oor ons gekom omdat ons afgode begin dien het.’ Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie, want hulle het verkeerde dinge gedoen en allerhande afgode begin dien. “Daarom moet jy nou die woorde van hierdie lied neerskryf wat Ek vir jou leer. Daarna moet jy dit vir die mense van Israel gaan leer. Leer die woorde vir hulle sodat hulle dit kan sing. Agterna sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle nie gedoen het wat Ek hulle beveel het nie. “Ek gee vir hulle ’n land wat oorgenoeg van alles het. Ek het hulle oupagrootjies belowe dat Ek hulle na hierdie land sal bring. In hierdie land sal die Israeliete ryk word. Dit sal baie goed met hulle gaan. Hulle sal kan eet net wat hulle wil omdat hulle meer as genoeg van alles sal hê. Hulle sal vet word. Hulle sal egter ander gode begin dien. Hulle sal nie meer vir My respek hê nie. Hulle sal van My vergeet. En hulle sal ook vergeet van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het. Daardie dag sal hulle moeilikheid begin. Groot rampe sal oor hulle kom. Hulle sal swaarkry. Maar dan sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle geweet het wat om te doen, maar dat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle gesê het nie. Hulle kinders mag ook nie vergeet wat Ek vir julle gesê het nie. Ek weet mos hoe mense is. Selfs nog voor hierdie mense die land gaan bewoon wat Ek vir hulle gee, sê Ek al dat hulle My sal verlaat.” Toe het Moses die woorde van hierdie lied opgeteken en hy het dit vir die Israeliete geleer. Die Here het daardie dag ook met Josua gepraat. Hy het vir Josua ’n opdrag gegee. Hy het gesê: “Wees sterk! Wees vol moed! Jy moet hierdie mense die land invat wat Ek belowe het om vir hulle te gee. Onthou, Ek sal by jou wees!” Moses het toe alles wat hy daardie dag gesê het, in ’n boek geskryf. Hy het tot die laaste woord toe alles neergeskryf wat die Here van sy volk verwag. Toe het hy die mense wat in die huis van die Here werk, die mense wat die ark dra waarin die ooreenkoms is wat die Here met sy volk gemaak het, beveel: “Vat hierdie boek waarin opgeskryf is wat die Here van sy volk verwag. Sit dit langs die ark waarin die ooreenkoms is wat die Here julle God met julle gemaak het. Laat die boek julle elke dag herinner aan alles wat die Here vir die volk van Israel gesê het om te doen. Ek weet baie goed hoe opstandig hierdie klomp mense is. Hulle koppe is baie hard. Ek is nou nog by julle. En nogtans het julle kort-kort teen die Here in opstand gekom. En hoe het julle nie teen die Here gerebelleer nie! Hoeveel te meer sal dit nie gebeur wanneer ek die dag dood is nie. Ek weet dat julle nog baie kere teen die Here in opstand gaan kom. “Roep nou al die leiers en die offisiere van die verskillende stamme van Israel bymekaar. Ek wil met hulle praat. Die Here wat heers oor die hemel, sowel as die mense op aarde, moet hoor wat ek vir julle sê. Hulle moet agterna vir almal sê dat julle nie gedoen het wat ek gesê het nie. Ek weet nou al dat julle na my dood in ’n spul slegte mense gaan ontaard. Julle sal nie op die pad loop wat ek vir julle gewys het om te loop nie. Daarom gaan daar êrens in die toekoms rampe en moeilikhede oor julle kom. Julle gaan die Here baie kwaad maak met al die slegte dinge wat julle voor Hom gaan doen.” Toe het Moses hierdie lied, tot die laaste woord toe, vir die mense van Israel geleer. Die lied klink so: “Hoor, almal wat daar bo in die hemel bly. Luister na wat ek sê. Hoor, almal wat op aarde bly. Luister na die woorde wat ek sê. Wat ek julle gaan leer, gaan soos verkwikkende reënwater oor julle spoel. My woorde klink so aangenaam soos dou op die gras. My woorde val soos reëndruppels op jong gras wat pas uitgeloop het. Wat ek leer, is soos sagte reënbuie op jong plante. “Ek wil vir almal vertel van die Here. Ons God is wonderlik! Hy is die Rots waarop ons ons lewe bou, en ons is veilig omdat ons by Hom is. Alles wat Hy doen, is goed en reg. Hy tree altyd reg en goed teenoor almal op. Hy staan by ons, en Hy doen nooit iets verkeerds teenoor ons nie. Hy tree altyd reg teenoor ons op. Hy doen net goed aan ons. Julle kan maar op Hom vertrou! “Israel het Hom al wie weet hoeveel maal in die steek gelaat. ’n Mens kan daarom vra: Is hulle nog regtig sy kinders? Kan Hy hulle nog enigsins gebruik om vir Hom iets te doen? Hulle is regtig ’n slegte spul mense, goed vir niks! “Is dit die manier waarop julle nou vir die Here dankie sê ná alles wat Hy vir julle gedoen het? Julle is die domste klomp mense op aarde. Het julle dan g’n verstand nie? Is Hy nie die Vader wat jou gemaak het nie, Israel? Ja, Hy is jou Skepper. Jy is waar jy is omdat Hy jou tot hier gebring het. Dink ’n bietjie terug aan die pad wat God saam met jou geloop het. Onthou watter goeie dinge Hy vir Israel gedoen het. As jy nie kan onthou nie, vra die ou mense om vir jou te vertel. “God wat enigiets kan doen, het nasies in verskillende lande geplaas om daar te bly. Hy het mense in volke opgedeel. Hy het self die grense getrek van die lande waarin hulle moet bly. Net so het Hy ook die grense van die grondgebied van Israel bepaal. Want die volk van Israel behoort aan die Here. Jakob is sy persoonlike eiendom. Hy het hierdie volk geskep om vir Hom vreugde te gee. “Die Here het Israel in ’n woestyn gaan haal. Daar was niks in die woestyn om van te leef nie. Daar het Hy hierdie volk gered. Hy het hulle met sy liefde toegemaak en hulle beskerm. Hy het oor Israel wag gehou asof Israel sy kosbaarste skat en besitting is. Hy het hulle opgepas en gelei op die beste pad. “’n Arend skop op ’n dag haar kleintjies wat te groot geword het, uit die nes uit. Hulle moet op hulle eie begin kos soek en hulle eie nes skrop. Maar wanneer sy hulle uitskop, vlieg sy onder hulle in sodat sy haar kuikens eers op haar vlerke dra. Sy doen dit totdat hulle self kan vlieg, en genoeg selfvertroue het om oor die weg te kom. Net so het die Here sy volk gelei. Hy alleen het vir sy volk gesorg. Hy het hulle gedra. Geen ander god het Hom gehelp nie. Israel het net voor die Here gebuig. “Dis die Here wat vir sy volk hierdie mooi land gegee het. Hy het dit vir hulle as ’n geskenk gegee. Hierdie land het genoeg dat sy inwoners kon eet tot hulle versadig is. Daar was heuning wat jy oral in die veld kon kry. Daar was olie wat uit die harde klip gemyn kon word. Die mense het botter van melk gemaak. En hulle het melk van hulle vee gekry. Daar was vet lammers en skaapramme en bokramme uit Basan om te eet. Hulle het die beste koring gehad. Daar was genoeg wyn om te drink wat hulle van die beste druiwe gemaak het. Die Here het dit vir hulle gegee.” “Maar Israel het gou-gou vet en lui geword. Die Here het Israel baie liefgehad en hulle bederf. Maar Israel het so vet geword dat hulle nie meer moeite wou doen nie. Toe het hierdie volk nie meer na die Here geluister nie. Hulle het die God wat hulle gemaak het, weggestoot. Hoe dom was hulle nie! Israel was so vol van hulleself dat hulle hulle nie meer aan God gesteur het nie. En dit is die God wat hulle gered het toe hulle in die nood was! Israel het die Rots verwerp waarop hulle hul lewe gebou het. “Toe het hulle ander gode begin aanbid. God het jaloers geword, want Hy is baie lief vir sy volk. Hy wil hulle net vir Homself hê. Hulle het hulle God woedend kwaad gemaak met die allerverskriklikste dinge wat hulle gedoen het. Hulle het die Here beledig met wat hulle gedoen het. So het hulle offers vir duiwels gebring. Hulle het goed wat nie eens gode was nie, gedien. Hulle het daardie gode nie voorheen geken nie. Hierdie gode is maar nou die dag eers uitgevind. Hulle oupas en oumas het nie eens geweet dat sulke gode bestaan nie. Maar hierdie klomp mense het voor sulke nikswerd goed gebuig en hulle gedien. Jy het die Een wat jou kan beskerm, die Een wat jou gemaak het, afgeskeep, Israel. Jy het die God wat jou geskep het, vergeet. “Die Here het gesien wat jy doen. En dit was afskuwelik vir Hom. Hy het kwaad geword vir sy eie seuns en dogters. Julle het Hom woedend gemaak.” “Toe het Hy gesê: Nou maar goed. Ek sal hulle weggooi. Ek sal hulle vernietig. Hulle soek mos daarvoor, want hulle is ’n klomp slegte mense. Hulle hou nie hulle woord nie. Hulle het My jaloers gemaak toe hulle goed wat nie ’n god is nie, aanbid het. Hulle het hierdie nikswerd afgode bo My verkies. Hulle het My beledig met wat hulle gedoen het. Hulle het My uitgetart. Daarom sal Ek hulle nou jaloers maak. Ek sal dit doen deur ander nasies voorspoedig te maak. Ek sal hulle kwaad maak. Ek sal ’n spul eenvoudige mense wat nie eens aan my volk behoort nie, voorspoedig maak. Ek was so kwaad dat dit soos ’n vuur was wat aangesteek is. Hierdie vuur het alles verteer. Die aarde met al sy oeste is vernietig. Die berge het afgebrand. Tot die grafte is vernietig toe my woede daaroor gegaan het. “Ja, Ek sal rampe en ellende op hierdie volk afgooi. Ek sal hulle met pyle skiet wat hulle sal seermaak. Hierdie mense sal niks meer hê om te eet nie. Hulle sal dodelik siek word. Ek stuur roofdiere om hulle aan te val. Giftige slange sal hulle pik en hulle doodmaak. Buitekant op straat sal mense doodgaan in die oorlog en binne-in die huis sal mense van angs en benoudheid rondhardloop. Almal sal ly: die jongmans en die jongmeisies, die babas en die ou mense. Die laaste een sal doodgemaak word. “Ek wou hulle oor die hele aarde verstrooi sodat niemand weer aan hulle sal dink nie. Niemand sal eens onthou dat daar so ’n volk soos Israel was nie. Maar toe dink Ek daaraan: dalk sal die vyande dan met My spot. Hulle sal nie verstaan wat Ek doen nie. Hulle sal dink dis hulle wat Israel oorwin het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het gewen! Dis omdat ons sterk is dat ons die Here se volk vernietig het. Dis nie die Here wat dit gedoen het nie. Dis eintlik ons wat so goed is!’ “Israel is ’n nasie wat te dom is vir woorde. Hulle verstaan net mooi niks nie. Hulle kan nie insien wat met hulle gebeur nie. O, dat julle tog net slim kon word! Dan sou julle verstaan het wat besig is om met julle te gebeur! Dan sou julle kon insien dat die Here julle straf vir wat julle gedoen het. En dan sou julle kon begryp wat julle uiteinde gaan wees. “Kan dit gebeur dat een mens 1 000 op loop jaag? Kan twee mense 10 000 laat vlug? Ja, dit gebeur nou met jou, Israel. En weet jy hoekom? Want die Een wat julle wou beskerm, het julle aan julle vyande uitgelewer. Hy het moed opgegee met julle. Daarom het Hy julle aan julle vyande oorgegee.” “Maar die nasies het nie Iemand wat hulle beskerm soos hierdie volk nie. Israel se God is groot. Stadig maar seker begin die nasies dit agterkom. Hierdie nasies is afstammelinge van die mense van Sodom en Gomorra, daardie spul wat die allervreeslikste dinge gedoen het. Daarom het God hulle gestraf. Hulle is soos giftige druiwe wat bitter in jou mond smaak en jou doodmaak. Die wyn wat jy van hierdie druiwe maak, is soos dodelike gif. As jy hierdie gif drink, is jy binne sekondes dood. “Toe het die Here gesê: Ek onthou alles wat hierdie mense doen. En dan, op ’n dag, straf Ek hulle vir al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Dan sal hulle hard en ver val. Hulle voete sal onder hulle uitgly. Niks sal hulle kan red nie. Die dag dat Ek hulle gaan vernietig, kom vinnig nader. Wat Ek besluit het om met hulle te doen, sal vir seker gebeur. En dit gaan een van hierdie dae gebeur. Hulle sal verwoes word. “Die Here sal sy volk bymekaarmaak om voor Hom te kom staan. Dan sal Hy as die groot Regter elkeen se hofsaak hanteer. Hy sal die mense wat reg voor Hom geleef het, onskuldig verklaar. Hy sal hierdie mense wat getrou aan Hom gebly het, beskerm. Maar dan sal Hy vir die ander vra wat die slegte dinge gedoen het: En waar is julle afgode nou? Waar is die nikswerd goed wat julle gehoop het julle sal beskerm? Waar is die afgode voor wie julle offers van vet gebrand het en vir wie julle wyn uitgestort het? Julle het mos gedink dis hulle wat goed aan julle doen! Laat julle gode nou opstaan en julle kom help! Ek gaan julle nou straf. Hardloop nou na julle afgode toe, dat hulle julle kan help as hulle kan! “Julle moet dit goed besef: Ek is die Here. Ek alleen is die Here. Daar bestaan geen ander God nie. Ek besluit wie moet bly lewe en Ek besluit wie doodgemaak moet word. Dis Ek wat jou siek maak en dis Ek wat jou gesond maak. Niks en niemand kan jou uit my hand red nie. En nou belowe Ek so seker as wat Ek leef dat Ek my vyande sal straf. Ek sal persoonlik ’n wapen vat en daardie mense bykom wat met hulle slegte dade My tart en beledig. Ek sal wraak neem op mense wat gedink het hulle hoef hulle nie aan My te steur nie. Oral waar Ek mense straf vir hulle slegte dade, sal daar net bloed wees. Ek maak almal dood wat Ek gevange geneem het. Ja, Ek maak ook die leiers van my vyande almal dood. “Daarom moet almal wat in die hemel bly vrolik wees. Hulle moet feesvier en God aanbid. Al die mense wat die Here dien, moet ook vrolik wees. Want die Here maak dié mense dood wat sy kinders aangeval het en hulle skade berokken het. Hy maak al sy vyande dood. Hy maak sy land en sy mense skoon. Daar sal weer vrede wees tussen die Here en sy volk.” Moses het toe hierdie lied vir die volk geleer. Josua, Nun se seun, het langs hom gestaan en hom gehelp. Toe Moses klaar was, het hy vir die Israeliete gesê: “Julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle gesê het. Vertel ook vir julle kinders wat ek vandag vir julle gesê het. Leer hulle om dit te doen. Wat ek vir julle gesê het, is nie net praatjies nie. Nee, hierdie woorde bring lewe. As julle presies doen wat ek vir julle gesê het, sal julle lank leef en oud word in die land wat julle nou ingaan wanneer julle deur die Jordaan getrek het.” Daardie dag het die Here vir Moses gesê: “Gaan klim op die Neboberg. Hierdie berg is aan die oostekant van die Jordaan, oorkant Jerigo. Kyk goed na Kanaän. Dis die land wat Ek vir die volk Israel gee sodat hulle daarin kan bly en dit besit. Jy sal daar op die berg doodgaan. So het jou broer Aäron ook doodgegaan, op die Horberg. Albei van julle het van My af weggedraai en voor die Israeliete verkeerd opgetree toe julle vir hulle water uit die rots gegee het by Meriba-Kades in die Sinwoestyn. Julle het My nie gerespekteer met wat julle daar aangevang het nie. Daarom sal jy die land net op ’n afstand sien, die land wat Ek vir jou volk gaan gee. Maar jy mag nie self daar ingaan nie.” Toe het Moses die Israeliete voorspoed toegebid. Net voor sy dood het hy vir hulle gesê: “Die Here het uit die Sinaiwoestyn gekom en Hom aan ons bekendgemaak. Van die Seïrberge af het ons Hom sien nader kom. Toe Hy by Paranberg verbygaan, het ons die vuur in sy regterhand sien brand. Hy het gekom met tien duisende van die mense wat Hom dien. “U het gekom, Here, omdat U u volk liefhet. U hou die mense in u eie hand vas wat U vir Uself eenkant gesit het om U te dien. U beskerm hulle. Hierdie mense loop oral agter U aan. Hulle doen wat U vir hulle sê. Wat U ons beveel, is die kosbaarste besitting wat u volk op aarde het. Die Here het ons Regeerder geword. Israel is vir Hom baie spesiaal. Al die leiers van die volk het toe bymekaargekom, saam met al die stamme van Israel. En hulle het die Here tot hulle koning verklaar.” Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.” Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.” Moses het toe oor die stam van Levi gesê: “Here, Levi se mense werk in u huis. U het vir hulle die werk gegee om U elke dag te dien. Hulle is elke dag op hulle pos. U het by Massa gekyk of hulle getrou sal wees en U het by die Meribawaters ’n hofsaak teen hulle gevoer. Maar hulle het U nie in die steek gelaat nie. Hulle het alles gedoen wat U hulle beveel het. Hulle het u ooreenkoms met u volk veilig beskerm. Hulle was meer lojaal aan U as aan hulle ouers en hulle eie kinders. Laat hulle nou vir Israel leer wat die Here verwag. Laat hulle Israel herinner aan wat die Here wil hê hulle moet doen. Hulle moet elke dag wierook voor die Here brand om te wys dat hulle Hom respekteer. Net hulle mag offers vir die Here bring. Maak die kinders van Levi voorspoedig, Here. Aanvaar alles wat hulle doen. Vernietig hulle vyande. Slaan die mense wat hulle haat plat sodat hulle nie weer op hulle voete kan kom nie.” Oor die stam van Benjamin het Moses gesê: “Die Here het die mense van Benjamin lief. En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig. Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie. Hulle bly by Hom.” Moses het toe oor die stamme van Josef gepraat: “Mag die Here die land waar hierdie stamme bly, voorspoedig maak. Mag Hy op die regte tyd vir hulle reën stuur. Mag daar volop dou op hulle grond wees. En mag daar genoeg onderaardse water wees. Mag Hy hulle ryk maak met goeie oeste. Mag Josef elke maand genoeg kry om te eet. Mag hy rekordoeste teen die berge se hange hê, en mag die heuwels se skatte hom ryk maak. Mag die Here vir hom die beste gee wat uit die aarde kom. Mag die Here hom voorspoedig maak, die Here wat Hom daar in die doringbos aan Moses bekendgemaak het. Mag dit alles met Josef gebeur. Mag hy die regeerder oor Israel, sy broers, wees. Josef is so sterk soos ’n jong bul. Hy loop trots rond, want hy is so sterk soos ’n buffel. Hy sal vreemde nasies wegjaag, en hulle sal vlug tot aan die eindes van die aarde. Dit is my wens vir die twee stamme van Josef, vir Efraim en Manasse.” Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is. Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.” Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies. Die mense van Gad het die beste deel van die land vir hulleself uitgekies. Een van die beste dele van die land is vir hom gegee. Toe die leiers van die volk bymekaargekom het, was dit Gad wat gedoen het wat die Here van hom vra. Hy het reg gedoen.” Oor die stam van Dan het Moses die volgende kwytgeraak: “Dan is die welpie van ’n leeu. Hou hom dop. Hy gaan skielik uit sy woonplek, uit Basan uit sy prooi bespring.” Oor Naftali se stam het Moses gesê: “Naftali, jy geniet die allerbeste. Die Here het jou ryk gemaak. Jy is baie voorspoedig. Mag jou grense nog verder verskuif, mag jou land groter word na die westekant en die suidekant toe.” Moses het oor die stam van Aser gesê: “Mag Aser voorspoediger wees as sy broers, die ander seuns van Jakob. Hy is die gunstelingseun van sy pa. Mag dit met hom goed gaan. Mag hy baie ryk word uit die olie wat in sy land voorkom. En mag hy veilig in sy stede bly sodat sy vyande niks aan hom kan doen nie. Mag hy baie oud word en baie lank in sy land woon. “Daar is niemand soos die God van Israel nie! Hy kom van die hemel af waar Hy woon om jou te help as jy in die moeilikheid is. Hy is die Koning van die heelal. Hy ry op die wolke. Jy kan maar by Hom gaan wegkruip. Hy is die God wat verhewe is bo tyd. Hy hou sy arms onder jou en Hy hou jou regop, Israel. Hy roei jou vyande voor jou uit. Hy beveel jou: roei jou vyande volledig uit! Daarom sal Israel veilig wees. Die Here sal hulle beskerm. Hy sal hulle voorspoedig maak. Hy gee vir hulle ’n land wat volop graan en wyn het. Die grond word elke nag met dou natgemaak sodat dit vrugbaar is. Hoe het die Here jou nie voorspoedig gemaak nie, Israel! Watter ander volk is soos jy, ’n volk wat deur die Here gered is? Hy beskerm jou en Hy veg vir jou. Jou vyande buig laag voor jou. Hulle kruip voor jou. En jy trap op hulle.” Moses het toe van die vlaktes van Moab af na die Neboberg toe geloop. Hy het tot op die top van die Pisgaberg geklim. Die berg is reg oorkant Jerigo, maar aan die ander kant van die Jordaan. Daar het die Here vir hom die hele land gewys, die land wat Israel sou kry. Moses het die land gesien: die grond van Gilead af tot by Dan se land, die land wat Naftali sou kry, en dié van Efraim en Manasse. Ook die land van Juda tot by die Middellandse See, die Suidland en die vlakte, die laagte rondom Jerigo, die stad met die baie palms, tot by Soar. Toe het die Here vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek belowe het om vir Israel te gee. Ek het al vir julle oupagrootjies, vir Abraham en Isak en Jakob, belowe dat ek hierdie land vir julle sal gee. Ek het vir hulle gesê: Ek gee hierdie land vir julle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek het nou toegelaat dat jy die land met jou oë kan sien. Maar jy mag nie in die land ingaan nie.” Moses, die man wat die Here gedien het, is toe daar in die land Moab dood, net soos die Here gesê het. Die Here het self vir Moses begrawe in ’n vlakte in die land Moab, regoor Bet-Peor. Tot vandag toe weet niemand waar Moses se graf is nie. Moses het die hoë ouderdom van 120 bereik. Hy was nog sterk en gesond. Sy oë het nog nie eens ingegee nie. En hy het nog niks makeer nie. Die mense van Israel was baie hartseer oor Moses, hulle leier. Hulle het 30 dae lank niks anders gedoen nie. Hulle het net oor Moses gehuil, daar op die vlakte van Moab. Daarna het hulle verder getrek. Josua die seun van Nun was hulle nuwe leier. Hy was ’n slim man, want Moses het hom geleer wat om te doen. Die volk Israel het alles gedoen wat hy hulle beveel het. Hulle het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het om vir hulle te sê. Daar was nog nie weer ’n man soos Moses nie. Hy het vir die volk kom sê wat die Here hom beveel het, want die Here het Moses as sy vriend beskou. Hulle het met mekaar gepraat, en hulle het mekaar persoonlik geken. Die Here het hom gestuur om Israel uit Egipte te gaan red. Moses het al die wonderlike dinge gedoen wat die Here vir die farao, die koning van Egipte, en al die mense van Egipte wou wys. Ja, Moses het al die groot en wonderlike dinge gedoen wat die Here vir Israel wou wys. Die Here het vir Israel gewys wie Hy is en hoe sterk Hy is. En Hy het Moses gebruik om dit te doen. Na die dood van Moses, die groot dienaar van die Here, het die Here met Josua kom praat. Hy was die seun van Nun. Josua was vroeër ook Moses se assistent. Die Here het vir hom gesê: “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy Israel deur die Jordaan na die land toe lei wat Ek self aan hulle gaan gee. Ek maak aan jou dieselfde belofte wat ek vroeër aan Moses gemaak het: elke plek waardeur julle trek, sal Ek aan julle gee. Die grense van julle land sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanonberge in die noorde, en van die Eufraatrivier in die ooste deur die gebied van die Hetiete tot by die Middellandse See in die weste. Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie. Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.” Josua sê toe vir die amptenare van die volk: “Gaan deur die kamp en sê vir die mense: Kry vir julle padkos reg, want oor drie dae trek ons deur die Jordaan om die land in besit te neem wat die Here julle God vir julle gee.” Toe roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bymekaar. Hy sê vir hulle: [13-14] “Julle onthou mos dat die Here se dienaar, Moses, vir julle gesê het: ‘Die Here julle God sal hierdie stuk grond aan die oostekant van die Jordaan vir julle gee as julle nuwe woonplek. Laat julle vroue, kinders en vee dan solank hier bly terwyl julle met julle wapens voor die res van die stamme uittrek om hulle te help om die land in te neem. *** Nadat die Here vir julle volksgenote ook ’n rusplek gegee het soos vir julle, en nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem, kan julle weer hierheen terugkom. Dan kan julle hier aan die oostekant van die Jordaan kom bly. Dit is die gebied wat Moses, die Here se dienaar, vroeër aan julle gegee het.” Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waarheen jy ons stuur. Ons sal na jou luister soos ons na Moses geluister het. Mag die Here jou God by jou wees soos Hy by Moses was. Enigeen wat nie doen wat jy sê nie, moet doodgemaak word. Wees jy maar net sterk en vasberade!” Daarna het Josua in die geheim twee spioene uit die kamp in Sittim na Kanaän toe gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur en veral die stad Jerigo.” Hulle is toe daar weg. In Jerigo aangekom, het hulle in die huis van Ragab, ’n prostituut, gaan bly. Die koning van Jerigo het uitgevind dat daar in die nag Israelitiese mans in die land aangekom het om dit te verken. Hy laat weet toe vir Ragab: “Die mans in jou huis het hiernatoe gekom om op ons te spioeneer. Lewer hulle dadelik aan my uit!” [4-5] “Hier was mans by my,” antwoord sy die koning, “maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Hulle is in elk geval teen donker al hier weg, nog voordat die stad se hekke gesluit is. Ek weet nie waarheen hulle is nie, maar as julle gou maak, kan julle hulle dalk nog inhaal.” *** Intussen het Ragab egter die twee mans op die dak laat klim en hulle tussen die bondels strooi laat wegkruip wat sy daar opgestapel het. Die koning se soldate is toe daar weg om na die spioene te gaan soek op die pad wat langs die vlakker dele van die Jordaan verbyloop. Nadat die soldate daar uit is, is die stad se hekke weer agter hulle gesluit. Voordat die spioene uit Israel daardie aand gaan slaap het, het Ragab na hulle toe gegaan en vir hulle gesê: “Ek weet die Here het hierdie land vir julle gegee. Ons almal is bang vir julle. Om die waarheid te sê, die mense bewe so bang is hulle vir julle. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is. En ons weet ook dat julle die Amoritiese konings, Sihon en Og, aan die oorkant van die Jordaan saam met al hulle mense uitgeroei het. G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder. [12-13] Belowe my dan nou voor die Here dat julle my en my familie so goed sal behandel soos ek julle behandel het. Gee asseblief vir my ’n waarborg dat wanneer julle Jerigo inneem, julle my pa en ma en my broers en susters en hulle families ook sal laat leef.” *** Hulle sê toe vir haar: “Ons is bereid om ons eie lewe as waarborg te gee vir julle veiligheid. As julle ons nie verraai nie, sal ons ons belofte nakom wanneer die Here hierdie land vir ons gee.” Later het Ragab hulle met ’n tou deur die venster laat afsak, want haar huis was in die stadsmuur ingebou. “Gaan na die bergagtige gebied toe,” het sy vir hulle gesê, “die soldate sal julle nooit daar kry nie. Kruip dan vir drie dae daar weg totdat die mense wat na julle soek, terugkom Jerigo toe. Daarna kan julle teruggaan na julle eie mense toe.” Die spioene sê toe vir haar: “Ons sal die belofte nakom wat jy ons laat maak het. Later, wanneer ons die land inneem, moet jy hierdie rooi tou waarmee jy ons gaan laat afsak, weer aan jou venster vasbind. Sorg ook dat jou pa en ma en jou broers en al jou pa se familielede by jou in die huis is. Enigeen wat nie dan in jou huis is nie, is self verantwoordelik vir sy dood. Dan is dit nie ons skuld as hulle sterf nie. Ons sal sorg dat niemand in jou huis iets sal oorkom nie. Maar onthou, as jy ons verraai, verval ons belofte.” Sy het ingestem en hulle toe gehelp om weg te kom. Daarna het sy die rooi tou aan die venster vasgemaak. Die spioene is toe weg na die berge toe. Daar het hulle drie dae lank weggekruip. Die koning se manne het intussen oral na hulle gesoek. Uiteindelik het hulle teruggekeer stad toe omdat hulle niks gekry het nie. Daarna is die twee spioene bergaf en deur die Jordaan terug na Josua toe. Hulle het hom alles vertel wat gebeur het. Hulle het ook vir hom gesê: “Die Here gaan ons beslis hierdie land laat inneem, want die mense is verskriklik bang vir ons.” Vroeg die volgende môre het Josua en die Israeliete hulle goed opgepak en van Sittim af getrek tot by die Jordaan. Daar het hulle kamp opgeslaan terwyl hulle gewag het om die rivier oor te steek. Drie dae later het die beamptes deur die kamp gegaan en vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levitiese priesters die verbondsark van die Here julle God dra, moet julle oppak en hulle volg. Hulle sal vir julle wys waarheen om te gaan omdat julle nog nie voorheen hierlangs getrek het nie. Maar sorg dat daar ’n behoorlike afstand tussen julle en die verbondsark is, ten minste 900 meter.” Toe sê Josua vir die volk: “Bely julle skuld voor die Here en sorg dat julle verhouding met Hom reg is, want môre gaan die Here wonders onder julle doen.” Die volgende môre het Josua die priesters beveel om die verbondsark op te tel en die volk die land in te lei. Toe sê die Here vir Josua: “Wat Ek vandag gaan doen, sal maak dat al die mense na jou sal opsien as ’n groot leier. Hulle sal weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. Sê vir die priesters wat die verbondsark dra dat hulle by die Jordaan se kant, in die rivier, moet wag as hulle daar aankom.” Josua roep toe die Israeliete nader en sê vir hulle: “Kom hoor ’n bietjie wat die Here julle God vir julle te sê het. Soos julle die land intrek, sal Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete voor julle uitdryf om vir julle plek te maak. Dan sal julle weet dat die lewende God saam met julle is. Die verbondsark van die Here wat oor die hele aarde heers, wat voor julle uit deur die Jordaanrivier gaan, bewys dit. Intussen moet julle solank vir julle twaalf mense as julle verteenwoordigers kies, een uit elke stam. Sodra die priesters wat die verbondsark dra hulle voete in die water sit, sal die Jordaan ophou vloei. Dan sal die rivier aan die een kant opdam.” Die volk het kamp opgebreek en gereedgemaak om deur die Jordaan te trek, met die priesters wat die verbondsark dra aan die voorpunt. Soos gewoonlik in die oestyd was die Jordaan tot oorlopens toe vol. Toe die voete van die priesters wat die ark van die ooreenkoms met die Here gedra het, aan die water raak, het die water dadelik opgehou vloei. Dit het aan die bopunt by Adam, die dorp naby Sartan, begin opdam. Aan die onderpunt van die Jordaan het die water bly wegvloei na die Dooie See toe totdat die rivier opgedroog het. Daarna het die volk regoor Jerigo deur die rivier begin trek. Intussen het die priesters wat die verbondsark van die Here gedra het in die middel van die droë rivierbedding bly staan terwyl die volk deurgetrek het. Hulle het daar bly staan totdat almal uiteindelik deur die Jordaan gestap het. Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: [2-3]  “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.” *** Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme. Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.” Die mense het toe Josua se opdrag uitgevoer. Hulle het twaalf klippe, volgens die Here se opdrag aan Josua, in die middel van die Jordaan gaan optel, een vir elke stam. Hulle het hierdie klippe na hulle oornagkampplek toe gevat en daar neergesit. Josua het toe nog ’n herinneringsteken van twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die priesters met die verbondsark gestaan het. (Volgens oorlewering is hulle tot vandag toe nog daar.) Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan. Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg. Die groepe soldate uit die stam van Ruben en Gad, asook die halwe stam van Manasse, het eerste deurgegaan, soos Moses vroeër beveel het. Ongeveer 40  000 van hierdie manne was reg om oorlog te maak. Hulle het deurgetrek na die vlaktes van Jerigo toe. Die Here was by hulle. Die groot dinge wat die Here daardie dag deur Josua gedoen het, het die volk groot respek vir Josua laat kry. Hulle het hom, net soos vir Moses, met eerbied behandel vir die res van sy lewe. Die Here het vir Josua gesê: “Laat die priesters wat die ark met die getuienis dra nou uit die Jordaan uitkom.” Josua het dit toe gedoen. Toe die priesters wat die verbondsark gedra het, aan die ander kant van die rivier uitklim, het dit weer soos voorheen begin vloei en sy walle oorstroom. Dit het alles gebeur op die tiende dag van die eerste maand. Die volk het kamp opgeslaan by Gilgal, oos van Jerigo. Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan gebring het by Gilgal op mekaar gepak en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe?’ kan julle vir hulle sê: ‘Hier is Israel droogvoets deur die Jordaan.’ Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurstap sonder dat julle voete nat word. Dit is presies soos Hy vroeër met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. Die Here het hierdie wonderwerk gedoen sodat al die volke van die aarde kan weet hoe magtig Hy is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien en eer.” Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete wat langs die Middellandse See gebly het, hoor dat die Here die Jordaan laat opdroog het sodat die Israeliete daardeur kon trek, het hulle moed in hulle skoene gesak. Hulle het baie bang geword. Hulle het nie meer moed gehad om teen die Israeliete te veg nie. In daardie tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir julle messe van klip sodat julle weer die Israeliete kan begin besny.” Josua het toe klipmesse laat maak en die manlike Israeliete besny. Daarom word die plek die Heuwel van die Besnydenis genoem. [4-6] Josua moes hulle besny, want toe Israel uit Egipte weg is, was al die mans reeds besny. Maar gedurende die 40 jaar wat dit hulle geneem het om deur die woestyn te trek, is nie een van die seuntjies wat toe gebore is, besny nie. Teen Josua se tyd was die Israeliete wat uit Egipte getrek het al dood omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Daarom dat Hy gesê het dat hulle nie die ryk en vrugbare nuwe land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. *** *** Dit is hierdie mense se seuns wat Josua nou besny het, omdat hulle nie op pad na die Beloofde Land toe besny is nie. Hulle moes nou hulle ouers se plek volstaan. Nadat die besnydenis afgehandel is, het hulle vir eers in die kamp gebly totdat hulle gesond was. Toe sê die Here vir Josua: “Vandag bevry Ek julle van die vernedering wat julle beleef het as slawe in Egipte.” Daarom is die plek Gilgal genoem, die naam wat dit nog steeds het. Terwyl die Israeliete nog by Gilgal op die vlakte naby Jerigo gekamp het, het hulle die paasfees op die aand van die veertiende dag van die maand gevier. Die dag na die paasfees het hulle vir die eerste keer kos van die Beloofde Land geëet: ongesuurde brood en gebraaide koring. Daardie oggend toe hulle van die kos van die land geëet het, het die manna vir altyd weggebly. Hulle het van toe af van hulle eie oeste in die land Kanaän geleef. Daar was nie weer manna nie. Op pad Jerigo toe het Josua skielik ’n man voor hom sien staan met sy swaard in sy hand. Josua stap toe na hom toe en vra: “Is jy ’n vriend of ’n vyand?” “Nie een van die twee nie,” antwoord hy. “Ek is die bevelvoerder van die Here se leër.” Josua het uit eerbied diep voor die man gebuig en gesê: “Ek is tot u diens. Wat wil u vir my sê?” Die bevelvoerder van die Here se leër sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene, want jy staan op ’n plek wat aan die Here toegewy is.” En Josua het dit gedoen. Jerigo se stadsdeure is deeglik gesluit. Daar was nêrens plek om in te kom nie, so bang was die mense vir die Israeliete. Niemand is toegelaat om in of uit te gaan nie. Maar die Here het vir Josua gesê: “Ek gee Jerigo, met sy koning en al sy soldate, in jou mag oor. Jy en al jou soldate moet elke dag, vir ses dae, reg om die stad loop. Voor die verbondsark, wat julle elke dag saam met julle moet dra, moet sewe priesters loop, elkeen met ’n trompet. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters op die trompette blaas. Sodra julle die priesters op die trompette hoor blaas, moet almal die aanvalskreet hard uitskree. Dan sal die mure van die stad inmekaarval sodat julle maklik in die stad kan ingaan om dit te oorrompel.” Josua die seun van Nun het toe die priesters geroep. Hy het vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en wys sewe priesters aan wat voor die ark uitloop, elkeen met ’n trompet waarop hy kan blaas.” Vir die volk het hy gesê: “Loop nou om die stad. Laat die soldate saam met die ark van die Here voor loop.” [8-9] En toe, net soos Josua beveel het, het die mense voor die ark begin stap met die sewe priesters wat op die sewe trompette blaas op hulle hakke, gevolg deur die verbondsark van die Here en die agterhoede. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas. *** “Moenie skree nie; moenie eens praat nie,” het Josua beveel. “Ek wil nie ’n woord van enigeen van julle hoor totdat ek julle beveel om te skree nie. Dan moet julle skree!” Hulle het op daardie dag die ark van die Here een maal om die stad gedra. Daarna is hulle terug kamp toe vir die nag. [12-13] Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas. *** Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor! Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.” Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel. Hulle het alles vernietig wat in die stad was. Mans en vroue, jonk en oud, beeste, skape, donkies, alles is voor die voet tot niet gemaak. Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.” Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring. Toe het hulle die stad met alles wat daarin was, tot op die grond afgebrand. Net die artikels van goud, silwer, brons en yster is uitgehou vir die skatkis in die Here se huis. Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel. Toe het Josua ernstig gewaarsku: “Die Here sal die mens wat die stad Jerigo probeer herbou, beslis straf. Dit sal die lewe van sy oudste seun kos om die fondamente te herbou en as hy die deure van die hekke hang, sal sy jongste seun sterf.” Die Here was by Josua. Hy was later oor die hele land bekend. Israel was ontrou aan die Here se bevel dat alles in Jerigo aan Hom geoffer moes word. ’n Man met die naam Akan het van die goed wat aan die Here geoffer moes word, vir homself gevat. Dit het die Here baie kwaad gemaak. Akan was die seun van Karmi en die kleinseun van Sabdi uit die familie van Serag wat deel was van die stam van Juda. [2-3] Josua het van sy manne uit Jerigo uit na Ai toe gestuur, ’n stad oos van Bet-El, naby die dorp Bet-Awen, met die opdrag om die omgewing te gaan verken. Toe hulle dit gedoen het, het hulle teruggekom en vir Josua gesê: “Ai is maar ’n klein dorpie met min soldate. Dit is nie nodig om die hele leër te vat om hierdie dorpie in te neem nie; 2 000 of 3 000 soldate is genoeg.” *** Josua stuur toe omtrent 3 000 soldate om Ai aan te val, maar hulle het hulle teen die soldate van Ai vasgeloop en moes op die vlug slaan. Die soldate van Ai het hulle van die stadshekke af agtervolg tot by die steengroewe. Daar het hulle teen die afdraande omtrent 36 soldate doodgemaak. Dit het die volk se moed gebreek en hulle baie bang gemaak. Josua en die leiers van die volk het hulle klere geskeur en met hulle gesig in die grond voor die verbondsark van die Here gaan lê. Hulle het tot die aand toe daar gelê met stof op hulle kop om hulle hartseer te wys. Toe sê Josua: “Ag, Here, hoekom het U ons oor die Jordaan laat trek, net om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly! Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? Want as die Kanaäniete en al die ander inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons totaal uitroei! Wat word dan van die eer en ontsag wat U toekom?” Toe sê die Here vir Josua: “Staan op! Hoekom lê jy so met jou gesig in die grond? Israel het sonde gedoen! Hulle het die ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed wat vir My opsy gesit is, vir hulleself gevat. Hulle het My besteel! Dit is die rede hoekom die Israeliete nou nie hulle vyande kan wen nie. Hulle moet voor hulle uit vlug omdat hulle self nou deel geword het van die oorlogsbuit wat vernietig moet word. Ek gaan julle alleen los, tensy julle al die goed wat aan My geoffer moes word, teruggee en dit vernietig. Staan op! Beveel die mense om hulleself te reinig en hulleself gereed te maak om môre voor My te verskyn. Want dit is wat Ek, die Here, die God van Israel te sê het: Julle het van die goed by julle wat Ek julle beveel het om te vernietig. Julle sal nie weerstand kan bied teen julle vyande tensy julle van hierdie goed ontslae raak nie! “Môre moet julle in julle stamverband aantree. Die Here sal die stam uitwys waaraan die skuldige persoon behoort. Daardie stam moet dan aantree volgens familiegroepe en die Here sal die skuldige familiegroep uitwys. Uit hierdie familiegroepe sal die Here dan die skuldige gesin aanwys. Daarna moet die lede van die gesin een vir een na vore kom. Die een wat dan uitgewys word as die een wat van die goed gevat het wat aan die Here behoort, moet met vuur verbrand word: hy, sy gesin en al sy besittings, want hy het ’n skandelike ding gedoen. Hy het my ooreenkoms met Israel verbreek.” Die volgende môre vroeg het Josua die Israeliete in stamverband laat aantree. Toe is die stam van Juda uitgewys. Uit die stam van Juda is die familiegroep van Serag aangewys. Uit hierdie familiegroep is die gesin van Sabdi uitgekies. Toe hy die gesin van Sabdi een vir een laat verbykom, is Akan die seun van Karmi, die kleinseun van Sabdi, as die skuldige aangewys. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.” “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig. Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.” Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder. Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud. Toe vat Josua vir Akan en sy kinders en sy vee en alles wat aan hom behoort het, saam met die silwer, die mantel en die goud wat hy gevat het, na die laagte van Akor toe. Die volk het saamgegaan. Toe sê Josua vir hom: “Jy het hierdie ramp oor ons gebring, maar vandag bring die Here die dood oor jou!” Die volk het toe vir Akan en sy gesin met klippe doodgegooi en hulle saam met hulle besittings verbrand. Hulle het ’n groot hoop klippe op hulle gestapel om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Daarna het die Here se woede bedaar. Van toe af staan die plek bekend as die Akorlaagte: die laagte van swaarkry en lyding. Toe sê die Here vir Josua: “Moet nou nie bang of mismoedig wees nie. Vat jou soldate en val die stad Ai aan. Ek sal vir jou die oorwinning gee oor die koning van Ai, sy mense, sy stad en sy hele land. Jy moet Ai en sy koning verwoes net soos Jerigo. Maar hierdie keer mag julle die oorlogsbuit en die vee vir julleself hou. Beplan ’n verrassingsaanval van die agterkant van die stad af.” Josua het hom toe gereedgemaak om Ai aan te val. Hy het 30 000 van sy beste soldate uitgekies en hulle in die nag na die stad toe gestuur met die volgende opdrag: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg, nie te ver van die stad af nie, en wees reg om aan te val. Ek en die ander soldate wat by my is, sal ’n skynaanval op die stad loods. Wanneer Ai se soldate op ons afkom, sal ons omdraai en net soos die vorige keer vir hulle vlug. Natuurlik sal hulle ons agternasit en dan sal ons hulle weglok totdat hulle van die stad afgesny is. Hulle sal dink ons vlug vir hulle, net soos die vorige keer. Dan moet julle uit julle wegkruipplekke kom en die stad inneem. Die Here julle God sal sorg dat julle die stad inneem. As julle dit gedoen het, moet julle dit aan die brand steek. Dit is ’n bevel van die Here!” Hulle is toe na hulle wegkruipplek toe, wes van Ai, tussen Ai en Bet-El. Daar het hulle gaan wag. Josua het die nag in die kamp deurgebring. Die volgende môre vroeg het Josua die soldate bymekaargeroep en hulle reggekry vir die geveg. Hy en die leiers van die volk het toe die soldate na Ai toe gelei. Die soldate wat by hom was, het opgetrek en regoor die ingang van die stad stelling ingeneem, aan die noordekant. Die laagte was tussen hulle en die stad. Daardie nag het hy omtrent 5 000 soldate gevat en hulle aan die westekant van die stad tussen Ai en Bet-El laat wegkruip. So is die hoofkamp noord van die stad opgeslaan met die soldate wat die hinderlaag sou lê aan die westekant. Josua het die nag in die laagte deurgebring. Toe die koning van Ai Josua se troepe sien, het hy vinnig opgetree. Hy en sy soldate het opgeruk na ’n gebied regoor die Jordaanvallei om Israel daar aan te pak. Hy het egter nie geweet van die versteekte troepe agter die stad nie. Josua en die soldate by hom het gemaak asof hulle teruggedryf word. Hulle het in die rigting van die woestyn gevlug. Al die manskappe in Ai en Bet-El moes kom help met die agtervolging. Hulle en die soldate van Bet-El is toe agter die Israeliete aan. Die stad het wawyd oopgestaan sonder iemand om dit te verdedig. Toe sê die Here vir Josua: “Steek jou swaard na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, in die rigting van die stad uitgesteek. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie, behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is. [25-26] Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei. *** Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat. Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar. Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel. Hy het die instruksies gevolg wat Moses vir die Israeliete gegee het. Dit het bepaal dat dit ’n altaar van klippe moes wees wat nie gekap of met enige instrument gevorm is nie. Op hierdie altaar het hulle vir die Here brandoffers en vredesoffers gebring. Die Israeliete het toegekyk terwyl Josua ’n afskrif van die wet van Moses op ’n stel klippe neergeskryf het. Die hele Israel, sowel as die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, hulle leiers, hulle beamptes en hulle regters het aan weerskante van die verbondsark gestaan, met die Levitiese priesters wat die ark gedra het, tussen hulle en die ark. Die een groep het met hulle rug na die berg Gerisim toe gestaan en die ander groep met hulle rug na die berg Ebal toe. Hulle het dit in opdrag van Moses, die Here se dienaar, gedoen sodat hulle die seën van die Here kon ontvang. Daarna het Josua alles wat die wet sê, voorgelees, ook oor seëninge en strawwe, net soos dit in die wet geskryf was. Josua het elke opdrag van Moses aan die hele vergadering Israeliete voorgelees. Die vroue en kinders en die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, was ook by. [1-2] Toe die konings wes van die Jordaan - dié in die berggebiede en die laeveld en al langs die kus van die Middellandse See af tot so ver noord as by die Libanonberg - van Josua se oorwinnings hoor, het hulle hulle magte saamgesnoer om teen Josua en die Israeliete te veg. Hierdie konings was die leiers van die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. *** Die inwoners van Gibeon het gehoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het en hulle het besluit om hom om die bos te lei. Hulle het vir hulle padkos ingepak en ou, stukkende saalsakke op hulle donkies gesit en ook gehawende en gelapte wynsakke uitgesoek. Hulle het hulle oudste klere en stukkende skoene aangetrek. Die brood wat hulle as padkos saamgevat het, was al kliphard en uitgedroog. So is hulle toe daar weg Gilgal toe, waar die Israeliete se kamp was. Daar aangekom, sê hulle vir Josua: “Ons kom uit ’n ver land om julle te vra om met ons ’n ooreenkoms aan te gaan.” Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete van afkoms was, gesê: “Ons is nie seker of ons ’n ooreenkoms met julle moet sluit nie. Wie sê julle bly nie sommer hier naby ons nie?” Hierdie Gibeoniete sê toe vir Josua: “Ons sal julle onderdane wees.” “Wie is julle en waar kom julle vandaan?” wou hy dadelik weet. Toe vertel hulle hom hierdie storie: “Ons kom van ’n baie ver land af na julle toe. Ons het gehoor van die groot dinge wat die Here julle God gedoen het. Ons weet wat in Egipte gebeur het en ook wat Hy met die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan gedoen het: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan, wat in Astarot gebly het. Daarom het ons leiers en ons mense vir ons gesê: ‘Vat vir julle padkos vir ’n lang reis en gaan praat met hierdie mense. Sê vir hulle dat ons bereid is om hulle dienaars te wees. Vra hulle om ’n ooreenkoms met julle te sluit om in vrede saam te leef.’ Kyk na ons padkos. Toe ons van ons huise af weg is na julle toe, was ons brood nog warm, so vars was dit. Maar kyk nou, nou is dit kliphard en verdroog! Kyk na ons wynsakke. Hulle was nuut toe ons hulle volgemaak het en nou is hulle vol barste. En sien julle hoe gehawend is ons klere en ons skoene? Dit is omdat ons so ver moes kom.” As ’n teken van vriendskap het die Israeliete toe saam met die Gibeoniete van hulle padkos geëet. Ongelukkig het hulle nie die Here daaroor geraadpleeg nie. Josua het ’n vredesverdrag met hulle gesluit. Die leiers van die volk het dit amptelik onderskryf. Drie dae nadat die ooreenkoms gesluit is, het die Israeliete uitgevind dat die Gibeoniete eintlik baie naby bly, sommer daar in dieselfde omgewing. Die Israeliete is onmiddellik daar weg om te gaan ondersoek instel. Na drie dae het hulle by die stede van die Gibeoniete aangekom: Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. Die Israeliete het hulle egter nie aangeval nie, omdat hulle leiers ’n eed in die Naam van die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê het. Hieroor was die volk ontsteld en het by die leiers gekla. Maar die leiers van Israel het gesê: “Ons het ’n eed voor die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê. Ons mag nou niks aan hulle doen nie. Ons moet hulle laat lewe, anders sal ons gestraf word omdat ons nie ons belofte gehou het nie. Laat hulle lewe. Maar ons het ’n ander voorstel. Hulle sal vir die res van hulle lewe vir ons moet water aandra en hout kap vir ons om te gebruik.” Toe laat roep Josua die mense van Gibeon en vra hulle: “Hoekom het julle ons bedrieg deur te sê julle bly ver van ons af terwyl julle geweet het dit is nie waar nie? As gevolg daarvan rus daar nou ’n vonnis op julle. Julle sal vir altyd diensknegte wees wat moet sorg dat daar genoeg hout en water vir die huis van my God is.” Hulle antwoord Josua: “Ons het dit gedoen, want van alle kante af het ons gehoor wat die Here julle God vir sy dienaar Moses gesê het. Hy het gesê dat Hy hierdie land vir julle as ’n besitting gee en dat julle al die inwoners daarvan moet uitroei. Daarom het ons julle bedrieg, want ons was bang julle maak ons ook dood. Ons is nou aan jou genade oorgelaat. Jy moet maar met ons doen wat jy dink is reg.” Josua het toe besluit om hulle nie dood te maak nie, aangesien hy nie die ooreenkoms met hulle wou verbreek nie. Maar hy het hulle van toe af baie hard vir die Israeliete laat werk. Hulle moes hout en water aandra vir die volk en later ook vir die altaar van die Here nadat Hy besluit het waar dit gebou moes word. Dit sou in die toekoms hulle werk bly. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai verower en heeltemal vernietig het en dat hy die koning van Ai doodgemaak het, net soos hy met Jerigo en sy koning gedoen het. Hy het ook gehoor dat die Gibeoniete vrede gemaak het met die Israeliete en nou by hulle bly. Dit het die mense van Jerusalem baie bang gemaak, want Gibeon was ’n groot stad net soos enigeen van die ander koninklike stede; dit was selfs groter as Ai en die soldate van dié stad was baie goeie vegters. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem stuur toe die volgende boodskap aan koning Hoham van Hebron, koning Piram van Jarmut, koning Jafia van Lakis en koning Debir van Eglon: “Kom help my om Gibeon aan te val en te vernietig, want hulle het ’n vredesverdrag met Josua en die Israeliete gesluit.” Toe het hierdie vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, hulle magte saamgesnoer en Gibeon aangeval. Die mense van Gibeon het dadelik boodskappers na Josua toe gestuur waar hy in die kamp by Gilgal was en vir hom gesê: “Moet julle dienaar asseblief nie nou in die steek laat nie! Kom gou! Kom red ons! Al die Amoritiese konings van die berggebiede het saamgespan en ons aangeval!” Josua en al sy soldate het hulle dadelik te hulp gesnel, hy en sy soldate en al die dapper manne. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die oorwinning is joune. Nie een van hulle sal teen jou kan bly staan nie.” Josua het die Amoriete onkant gevang, want hy en sy soldate het die hele nag deur getrek van Gilgal af. Toe die Amoriete die Israelitiese soldate sien, het die Here hulle paniekbevange gemaak. Die Israeliete het hulle daar by Gibeon verslaan. Toe hulle op die vlug slaan, het die Israeliete hulle agternagesit deur die bergpas by Bet-Goron en hulle bly uitroei tot by Aseka en Makkeda. Terwyl die Amoriete langs die bergpas by Bet-Goron af vir die Israeliete gevlug het, het die Here groot haelstene uit die lug op hulle laat neerreën. Hierdie hael het aangehou tot by Aseka en meer van hulle doodgemaak as Israel se soldate. Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.” Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee. Hierna is Josua en sy soldate terug na die kamp toe in Gilgal. Die vyf Amoritiese konings het egter gevlug en in ’n grot by Makkeda gaan wegkruip. Toe Josua hoor dat iemand hulle wegkruipplek gekry het, sê hy: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en kry mense om dit te bewaak. Die res van julle agtervolg julle vyande en maak hulle dood, moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.” Die Israelitiese soldate het hulle omtrent almal uitgeroei behalwe ’n paar wat weggekom het en in hulle versterkte stede gaan wegkruip het. Daarna is Josua se soldate almal veilig na hom toe terug waar hy by Makkeda gewag het. Daarna het niemand dit weer gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie. Toe sê Josua: “Vat die klippe weg en bring die vyf konings uit na my toe.” Hulle het dit toe gedoen en die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon uit die grot uitgebring na Josua toe. Hy roep toe al die manskappe nader en sê vir sy offisiere: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke as teken dat hulle verslaan en verneder is.” Die offisiere het dit toe gedoen. Toe sê Josua vir hulle: “Moenie bang of bekommerd wees nie. Maar wees sterk en vasberade, want dit is presies wat die Here vorentoe met al julle vyande gaan doen.” Daarna het Josua die konings doodgemaak, elkeen van hulle aan ’n boom laat ophang en hulle daar laat hang tot die aand toe. Met sononder is hulle op Josua se bevel van die bome afgehaal en in die grot gegooi waarin hulle vroeër weggekruip het. Die ingang van die grot is toe met groot klippe toegepak as ’n blywende herinneringsteken. Daardie selfde dag het Josua Makkeda ook ingeneem en verwoes. Hy het die mense en hulle koning doodgemaak. Alles in die stad is uitgeroei. Daar het niks oorgebly nie. Die koning van Makkeda is, net soos die koning van Jerigo, ook doodgemaak. Van Makkeda af is Josua en sy soldate na Libna toe en het dié ook aangeval. Die Here het ook vir Israel ’n oorwinning oor hierdie stad laat behaal. Hulle het niemand se lewe gespaar nie. Ook die koning van Libna is doodgemaak. Van Libna af is Josua en sy soldate na Lakis toe. Hy het sy soldate die stad laat omsingel en dit aangeval. Op die tweede dag van die stryd het die Here Lakis in Israel se mag oorgegee. Net soos by Libna het hulle ook almal in die stad doodgemaak. Gedurende die geveg het koning Horam van Geser saam met sy troepe vir Lakis te hulp gesnel. Maar Josua se manskappe het hom en al sy soldate tot die laaste man toe doodgemaak. Van hier af het Josua en die volk verder getrek na Eglon toe. Daar aangekom, het hulle dit omsingel en toe aangeval. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en almal daarin doodgemaak. Net soos in Lakis se geval, het hy alles en almal in die stad vernietig. Van hier af het hulle opgetrek na die berggebied van Hebron toe. Hulle het dié stad ook aangeval en dit ingeneem. Hulle het die koning en al sy mense asook die mense van al die omringende dorpe doodgemaak. Josua het die stad, net soos vir Eglon, totaal vernietig. Niks en niemand is gespaar nie. Daarna het hulle teruggedraai na Debir toe en die stad aangeval. Josua het die stad ingeneem, die koning en al die inwoners van die omringende dorpe doodgemaak en al die mense in die stad uitgeroei. Net soos in die geval van Libna en Hebron het Josua Debir ook heeltemal vernietig. Niemand het weggekom nie. Josua het die hele gebied verower: die berggebiede met hulle volke en konings, die woestynagtige suidelike gebiede, die vlaktestreke en ook die oostelike hange by die Dooie See. Hy het niemand se lewe gespaar nie, maar hulle voor die voet uitgeroei, soos die Here, die God van Israel beveel het. Josua se oorwinningstog het hom van Kades-Barnea in die suide tot by Gasa naby die kus geneem. Dit sluit ook die gebied van Gosen in en selfs so ver noord as Gibeon. Josua het al hierdie konings en hulle gebiede in een veldtog oorwin, omdat die Here die God van Israel aan Israel se kant geveg het. Daarna is Josua en al sy soldate terug na die kamp toe by Gilgal. Toe die nuus van Israel se oorwinnings koning Jabin van Hasor bereik, het hy dadelik boodskappe aan die volgende konings gestuur: koning Jobab van Madon, die konings van Simron en Aksaf, die konings in die noordelike bergagtige gebiede, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, die konings wat in die vlakte gebly het, asook dié wat in die gebied Dor gebly het, dit is die westelike gebied tussen Karmel en Sesarea teen die kus van die Middellandse See. Ook aan die Kanaäniete in beide die oostelike en westelike gebiede en die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berggebiede en die Hewiete wat aan die voet van die berg Hermon gebly het, naby die gebied van Mispa. Al hierdie konings het onmiddellik op die boodskap gereageer en gereedgemaak vir oorlog. Hulle gesamentlike leër saam met hulle perde en strydwaens was so groot dat hulle soos die sandkorrels op die strand gelyk het. Hierdie gesamentlike mag het hulle kamp by die meer van Merom opgeslaan, gereed vir die oorlog teen die Israeliete. Maar die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Teen dié tyd môre gee Ek hulle oor aan Israel om hulle almal dood te maak. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.” Josua en sy soldate is toe af na Merom toe, waar hulle ’n verrassingsaanval op die ander leër geloods het. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Toe die vyand vlug, het hulle hulle agternagesit tot so ver noord as Sidon-Rabba en Misrefot-Majim en ook tot by die vallei van Mispa in die ooste. Hulle het nie opgehou voordat hulle die hele mag uitgeroei het nie. Josua het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand. Daarna het Josua omgedraai, terug na Hasor toe. Ook dié stad het hy ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor was voorheen die magtigste van al die koninkryke in daardie omgewing. Die Israeliete het al die inwoners van die stad doodgemaak en die stad totaal en al afgebrand en vernietig. Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense daarin uitgeroei volgens die opdrag van Moses die Here se dienaar. Behalwe vir Hasor het hulle nie een van die ander ou, gevestigde stede afgebrand nie. Die Israeliete het die buit en al die vee van die stede vir hulleself gevat, maar die inwoners het hulle doodgemaak. Die opdragte wat die Here vir Moses sy dienaar gegee het, het Moses net so aan Josua oorgedra. Josua het dit alles stiptelik uitgevoer. Josua het die hele land ingeneem: die bergagtige gebiede, die hele suidelike deel, asook die hele gebied van Gosen, die laerliggende dele, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle voetheuwels. [17-18] Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak. *** Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan. Die Here het toegelaat dat hulle hardkoppig bly. Hulle het toe in oorloë met die Israeliete betrokke geraak en is voor die voet vernietig, volgens die Here se opdrag aan Moses. In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge van Hebron, Debir en Anab, asook in die berggebiede van Juda en Israel, uitgeroei. Daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Hier en daar in die gebiede van Gasa, Gat en Asdod was daar klein groepies van hulle oor. Volgens die Here se opdrag aan Moses het Josua die hele land ingeneem. Hy het dit aan die Israeliete as hulle besitting gegee deur dit gelykop onder die stamme te verdeel. Na ’n ruk was die land uiteindelik vry van oorlog. Die Israeliete het in hierdie stadium reeds die hele gebied aan die oostekant van die Jordaan in besit geneem. Dit strek van die Arnonvallei op met die Jordaan tot so ver noord as die berg Hermon. Hulle het daar twee konings verslaan. Daar was eerstens koning Sihon van die Amoriete, wat in Gesbon gebly en oor die helfte van Gilead regeer het. Sy gebied het gestrek vanaf Aroër op die rand van die Arnonvallei, deur die middel van die vallei tot by die Jabbokrivier wat die grens gevorm het met die Ammoniete se gebied. Dit het ook die oostelike deel van die Jordaanvallei ingesluit, van die See van Gennesaret af suid tot by die Soutsee, van Bet-Jesimot af tot by die hange van die Pisgaberge. Hulle het ook vir Og, die koning van Basan, verslaan. Hy was een van die laaste Refaïete en het in Astarot en Edreï regeer. Sy koninkryk het gestrek van die berg Hermon af tot by Salka in die noorde en het ook die hele Basan in die ooste ingesluit. In die weste het Og se ryk gegrens aan die koninkryke van Gesur en Maäka. Hy het ook oor die ander helfte van Gilead regeer wat nie aan koning Sihon van Gesbon behoort het nie. Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het vroeër hierdie konings verslaan. Daarna het hy hierdie gebiede aan die stamme van Ruben en Gad en die helfte van die Manassestam as hulle eiendom gegee. Die volgende is ’n lys van die konings wat Josua en die Israeliete aan die westekant van die Jordaan verslaan het, vanaf Baäl-Gad in die Libanonvallei tot by die Kaalberg wat na Seïr toe oploop. Josua het die gebied onder die stamme verdeel sodat hulle daar kon bly. Dit het ingesluit die berggebiede, die laeveld, die Jordaanvallei, die oostelike hange en die woestyngebied tot in die suide. Dit was gebiede wat voorheen aan die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete behoort het. Die Israeliete het die volgende stede se konings verslaan: Jerigo, Ai naby Bet-El, Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis, Eglon, Geser, Debir, Geder, Gorma, Arad, Libna, Abdulam, Makkeda, Bet-El, Tappuag, Gefer, Afek, Saron, Madon, Hasor, Simron-Meron, Aksaf, Taänak, Megiddo, Kedes, Jokneam teen die berg Karmel, Dor op die heuwel van Dor, Gojim by Gilgal en Tirsa. Hulle het altesaam 31 konings verslaan. Teen dié tyd was Josua al baie oud. Daarom het die Here vir hom gesê: “Jy is nou al baie oud, maar daar is nog ’n groot deel van die land wat ingeneem moet word: die hele grondgebied van die Filistyne en die Gesuriete. Ook die deel van hierdie gebied wat aan die Kanaäniete behoort. Dit is die gebied wat strek van die Sigorrivier af aan die oosgrens van Egipte en noordwaarts tot by die grens met Ekron. Dit sluit in die vyf Filistynse dorpe Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, asook die gebied van die Awwiete in die suide. Die res van die Kanaäniete se gebied moet ook nog ingeneem word, insluitend Meara wat aan die Sidoniërs behoort en verder noordwaarts tot by Afek aan die Amoritiese grens; die gebied van die Gebaliete; asook die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van die Hermonberg af tot by Lemo-Hamat. [6-7] Dit sluit ook die hoër bergagtige gebiede van die Libanon af tot by Misrefot-Majim in. Ek sal al hierdie mense uit hulle gebiede wegdryf sodat die Israeliete daar kan gaan bly. Wat jy moet doen, is om te sorg dat die hele land onder die halwe Manassestam en die ander nege oorblywende stamme verdeel word volgens my opdrag aan jou. *** Moses die Here se dienaar het reeds vir die stamme van Ruben, Gad en die ander helfte van die Manassestam hulle deel van die land aan die oostekant van die Jordaan gegee. Hulle gebied het gestrek vanaf Aroër die stad in die middel van die vallei op die oewer van die Arnonrivier en het ook die platorand van Medeba af tot by Dibon ingesluit. Dit het verder gestrek tot by die grens van die Amoriete en het al die stede van die Amoritiese koning, Sihon, wat in Gesbon regeer het, ingesluit. Ook Gilead, met die gebiede Gesur en Maäka, die hele berg Hermon, asook die hele Basan tot so ver as Salka. Dit het ook die koninkryk van koning Og van Basan, wat in Astarot en Edreï regeer het, ingesluit. Hy was die laaste van die Refaïete wat Moses nog verslaan en verdryf het. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uit die gebied uit verdryf nie, en daarom het hulle saam met hulle daar gebly. Net die stam van Levi het nie ’n eie grondgebied gekry nie. Hulle erfdeel was, soos die Here beloof het, ’n deel van die offers wat op die altaar aan die Here, die God van Israel, geoffer is. Aan die families in die stam van Ruben het Moses die volgende gebiede toegeken: van Aroër, die stad in die middel van die vallei op die oewer van die Arnonrivier, af tot by die platorand van Medeba. Ook Gesbon en die ander stede op die platorand: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, Jahas, Kedemot, Mefaä, Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die vallei, Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot. Hierdie gebied het al die stede op die platorand ingesluit, asook die hele koninkryk van koning Sihon. Hy was die Amoritiese koning wat in Gesbon regeer het en wat saam met die leiers van Midian Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba deur Moses verslaan is. Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam die seun van Beor doodgemaak. Die wesgrens van Ruben se grondgebied was die Jordaan. Al die dorpe en stede in hierdie gebied was die erfdeel van die families van die stam van Ruben. Aan die families van die stam van Gad het Moses die volgende gebied toegeken: Jaser en al die stede van Gilead, die helfte van die Ammoniete se gebied tot by Aroër net suidwes van Rabba; van Gesbon af tot by Ramat-Hammispe en Betonim en van Maganajim af tot by die grens van Lo-Debar. In die Jordaanvallei het dit Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, ingesluit asook die res van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon. Die westelike grens van hulle gebied was die Jordaan, tot so ver noord as die See van Gennesaret. Al die dorpe en stede in hierdie gebied was die erfdeel van die families van die stam van Gad. Moses het die volgende gebied aan die een helfte van die stam van Manasse toegeken: van Maganajim af, wat die hele gebied van Basan insluit, asook die hele koninkryk van Og, die koning van Basan, en al 60 die tentdorpe van Jaïr in Basan. Ook die helfte van Gilead en koning Og se koninklike hoofstede in Basan, naamlik Astarot en Edreï. Dit is die gebied wat die een helfte van die nageslag van Makir seun van Manasse, gekry het. Dit is hoe Moses die gebied aan die oostekant van die Jordaan, oos van Jerigo, verdeel het terwyl hulle op die vlakte van Moab gekamp het. Die stam van Levi het nie grond as ’n erfporsie gekry nie. Die Here, die God van Israel, sou vir hulle sorg uit dit wat aan Hom behoort het. [1-2] Wat nou volg, is ’n oorsig van hoe die priester Eleaser en Josua die seun van Nun saam met die familiehoofde die gebiede in Kanaän onder die nege en ’n half stamme van Israel verdeel het. Na aanleiding van die Here se opdrag aan Moses, het hulle lootjies getrek om te bepaal wie kry watter deel. *** Moses het reeds die gebied oos van die Jordaan aan die twee en ’n half stamme toegeken. Maar die Leviete het nie grond as ’n erfporsie gekry nie. Die nageslag van Josef het twee afsonderlike stamme gevorm, naamlik Manasse en Efraim. Alhoewel die Leviete nie grond as ’n besitting gekry het nie, het hulle wel sekere dorpe gekry waarin hulle kon bly asook weiveld vir hulle vee en ander diere. Die land is streng volgens die Here se opdrag aan Moses verdeel. By Gilgal het ’n afvaardiging van die stam van Juda onder leiding van Kaleb die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua toe gekom. Kaleb sê toe vir Josua: “Jy onthou mos wat die Here vir Moses, die man van God, oor my en jou gesê het daar by Kades-Barnea. Ek was 40 jaar oud toe Moses die Here se dienaar my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Die verslag wat ek teruggebring het, was eerlik. My medeverkenners het egter die volk bang gepraat, maar ek was getrou aan die Here my God. Daarom het Moses daardie dag ’n belofte aan my gemaak: ‘Die gebied waardeur jy geloop het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort omdat jy die Here jou God met jou hele lewe vertrou het.’ Soos jy kan sien, het die Here sy belofte aan my nagekom dat ek lewe en ook in die Beloofde Land sou ingaan. Vyf en veertig jaar gelede het die Here dit vir Moses gesê terwyl ons nog in die woestyn rondgetrek het. Wel, kyk na my, ek is nou ’n man van 85 en ek is nog net so sterk soos die eerste dag toe Moses my die land in gestuur het. Ek is nog tot enigiets in staat, selfs om oorlog toe te gaan. My versoek is dat jy nou vir my die berggebied sal gee waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy sal onthou dat die Enakiete in hulle versterkte stede daar bly, maar as die Here by my is, sal ek hulle kan verdryf soos Hy belowe het.” Hierop het Josua vir Kaleb geseën en Hebron aan hom as sy besitting gegee. Hebron behoort steeds aan die nakomelinge van Kaleb die seun van Jefunne, die Kenassiet, omdat hy die Here, die God van Israel, getrou gedien het. Hebron was voorheen bekend as Kirjat-Arba. Dit was vernoem na Arba, een van die beroemde helde van die Enakiete. Nou was daar uiteindelik vrede in die land. Die gebied wat aan die families van die stam van Juda toegeken is, het suidwaarts gestrek tot by die grens met Edom met die mees suidelike punt die Sinwoestyn. Die suidelike grens het by die eerste baai aan die suidelike punt van die Dooie See begin. Van daar af het dit suid van Skerpioenpas af geloop verby in die rigting van die Sinwoestyn. Dan strek dit suid verby Kades-Barnea, oor Gesron en op in die rigting van Addar. Daar swaai dit dan na Karka toe. Van daar af loop dit oor na Asmon, totdat dit uiteindelik die Egiptespruit bereik en die spruit dan volg tot waar dit teen die Middellandse See doodloop. Dit is hoe Juda se suidelike grens lyk. Die oosgrens van Juda is die Dooie See, noordwaarts tot waar die Jordaan in dié see uitmond. Die noordelike grens begin waar die Jordaan in die Dooie See inloop. Van daar af loop dit op na Bet-Gogla toe, dan noord van Bet-Araba verby en op na die klip van Bohan seun van Ruben toe. Daarvandaan loop dit deur die Akorlaagte op na Debir toe, waar dit noordwaarts swaai na Gilgal toe, wat regoor Adummimspas, suid van die spruit, lê. Dan loop die grens van Juda verder tot by die fonteine van En-Semes en En-Rogel. Van hier af gaan die grens op deur die Ben-Hinnomsvallei na die suidelike hang van die Jebusieteberg, waar die stad Jerusalem geleë is, en dan op na die top van die berg wes van die Hinnomsvallei aan die noordelike punt van die vallei van die Refaïete. Van daar af swaai die grens na die fonteine van Neftoag toe totdat dit uitkom by die dorpe naby die berg Efron. Daarvandaan draai die grens dan na Baäla toe, beter bekend as Kirjat-Jearim. Van Baäla af sirkel dit in ’n westelike rigting na die berg Seïr toe, oor die noordelike hang van die berg Jearim na Kesalon toe en dan af na Bet-Semes en van daar af verder na Timna toe. [11-12] Die grenslyn gaan dan verder tot by die hange van Ekron en draai dan in die rigting van Sikaron, verby Baälberg na Jabne toe, waarna dit teen die kus van die Middellandse See as wesgrens doodloop. Die families van die stam van Juda het in hierdie gebied gebly. *** Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron. Kaleb het drie van Enak se kinders, Sesai, Agiman en Talmai, uit hierdie gebied verdryf. Van daar af het hy die mense van Debir aangeval. Debir was vroeër as Kirjat-Sefer bekend. Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat Kirjat-Sefer inneem en verslaan.” Otniël die seun van Kaleb se broer Kenas het die stad ingeneem en so het Aksa sy vrou geword. Toe Aksa met Otniël trou, het sy hom probeer oorreed om by haar pa landbougrond te vra, maar hy wou nie. Toe sy haar ouers gaan groet en Kaleb haar vra wat sy wou hê, het sy geantwoord: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook as huweliksgeskenk vir my goeie waterbronne gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee. Hierdie is die gebied wat die families in die stam van Juda as erfdeel ontvang het: Die mees suidelike stede wat aan hulle behoort het, dit is nou dié teen die grens van Edom, was Kabseël, Eder, Jagur, Kina, Dimona, Adada, Kedes, Gasor, Jitnan, Sif, Telem, Bealot, Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor, Amam, Sema, Molada, Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet, Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja, Baäla, Ije-Abarim, Esem, Eltolad, Kesil, Gorma, Siklag, Madmanna, Sansanna, Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon, altesaam 29 stede saam met al hulle omliggende dorpe. Teen die voet van die berg was daar Estaol, Sora, Asna, Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim, Jarmut, Adullam, Soko, Aseka, Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim, veertien stede met hulle omliggende dorpe, Senan, Gadasa, Migdol-Gad, Dilan, Mispe, Jokteël, Lakis, Boskat, Eglon, Kabbon, Lagmas, Kitlis, Gederot, Bet-Dagon, Naäma, Makkeda, sestien stede met hulle aanliggende dorpe, Libna, Eter, Asan, Jiftag, Asna, Nesib, Keïla, Aksib, Maresa, nege stede met hulle omliggende dorpe, Ekron met sy buitestede en omliggende dorpe, wes van Ekron al die stede in die omgewing van Asdod, met hulle omliggende dorpe, Asdod met sy buitestede en omliggende dorpe, en Gasa met sy buitestede en omliggende dorpe tot die Egiptespruit en die kus van die Middellandse See. In die bergagtige gebied was daar Samir, Jattir, Soko, Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir, Anab, Estemoa, Anim, Gosen, Golon, Gilo, elf stede met hulle omliggende dorpe, Arab, Duma, Esan, Janum, Bet-Tappuag, Afeka, Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior, nege stede met hulle omliggende dorpe, Maon, Karmel, Sif, Jutta, Jisreël, Jokdeam, Sanoag, Kajin, Giba, Timna, tien stede met hulle omliggende dorpe, Galgul, Bet-Sur, Gedor, Maärat, Bet-Anot, Eltekon, ses stede met hulle omliggende dorpe, Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba, twee stede met hulle omliggende dorpe. In die woestyn was daar Bet-Araba, Middin, Sekaka, Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi, ses stede met hulle omliggende dorpe. Die mense van Juda kon dit egter nie regkry om die inwoners van Jerusalem, die Jebusiete, uit hulle stad te verdryf nie. Daarom het hulle saam met die mense van Juda daar bly woon. Die gebied wat die kinders van Josef gekry het, het gestrek van die Jordaan af naby Jerigo, by ’n punt oos van Jerigo naby die fonteine waar Jerigo se drinkwater vandaan gekom het. Van daar af loop die grens deur die woestyn in die bergagtige gebiede in tot so ver as Bet-El. Van Bet-El af loop dit na Lus toe en dan oor die grondgebied van die Erekiete tot by Atarot. Hiervandaan gaan dit weswaarts af na die grens van die Jafletiete toe tot so ver as Bet-Goron-Onder en dan oor Geser tot waar dit doodloop teen die Middellandse See. Die families van Josef se seuns, Manasse en Efraim, het hierdie gebied gekry. Efraim se stamgebied het gestrek vanaf Atrot-Addar in die ooste tot by Bet-Goron-Bo en van daar af tot by die Middellandse See. Van Mikmetat af in die noorde swaai die grens ooswaarts verby Taänat-Silo na Janoag in die ooste toe. Van Janoag af draai dit suid in die rigting van Atarot en Naära en dan teen Jerigo verby tot by die Jordaan. Van Tappuag af loop die grens wes, al met die Kanaspruit langs tot by die Middellandse See. Dit was die gebied wat aan Efraim se nageslag behoort het. Hulle het ook ’n aantal dorpe en stede binne die grondgebied van Manasse gekry. Hulle het nie die Kanaäniete uit Geser uit verdryf nie, maar hulle toegelaat om tussen hulle te bly woon en hulle as dwangarbeiders vir hulle laat werk. Die ander helfte van die stam van Manasse het toe hulle erfdeel gekry. Manasse was immers Josef se oudste seun. Makir, Manasse se oudste seun, die pa van Gilead, was ’n goeie soldaat en hy het reeds die gebiede van Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan gekry. Die res van die families van die Manassestam, Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida, het nou hulle deel ontvang. Hulle was almal manlike afstammelinge van Manasse en familiehoofde. Selofgad het nie seuns gehad nie, maar wel vyf dogters: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Selofgad se voorouers se name was Gefer, Gilead, Manasse en Makir. Selofgad se dogter het toe na die priester Eleasar, Josua en die leiers van die volk toe gegaan en vir hulle gesê: “Die Here se opdrag aan Moses was dat hy vir ons grond moes gee tussen ons familie.” Josua het toe vir hulle hulle erfdeel tussen hulle familie gegee, presies soos die Here beveel het. Daarom het Manasse tien dele gekry, bo en behalwe Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan, want sy dogters het, net soos sy seuns, ’n deel van die land as besitting ontvang. Gilead het aan die res van die manlike afstammelinge van Manasse behoort. Manasse se gebied strek van Aser af tot by Mikmetat, oos van Sigem. Van daar af loop die grens suid en sluit ook die gebied in waar die mense van En-Tappuag gebly het. Die streek van Tappuag het aan Manasse behoort, maar die dorp Tappuag self, wat op die grens van Manasse se gebied was, het aan Efraim se kinders behoort. Van daar af loop die grens af na die spruit Kana toe. Die stede aan die suidekant van die rivier het egter aan Efraim behoort, alhoewel hulle in die gebied van Manasse geval het. Manasse se grens het die noordelike oewer van dié spruit in ’n westelike rigting gevolg tot waar dit in die Middellandse See uitgemond het. Die gebied aan die suidekant van die kloof het aan Efraim behoort en die gebied noord daarvan aan Manasse, met die Middellandse See as die wesgrens. In die noordweste het Manasse aan Aser gegrens en in die noordooste aan Issaskar. Manasse het ook ’n paar dorpe met hulle omliggende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser besit: Bet-San, Jibleam, Dor, Endor, Taänak en Megiddo. Die mense van Manasse kon egter nie die inwoners van hierdie dorpe uit hulle dorpe verdryf kry nie; daarom het die Kanaäniete daar bly woon. Later, toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete toegelaat om steeds in hierdie stede te bly, maar hulle verplig om as dwangarbeiders vir hulle te werk. Die afstammelinge van Josef het ook met Josua gaan praat en vir hom gesê: “Hoekom het jy vir ons net een deel van die hele land gegee om in te bly? Besef jy nie dat die Here ons geseën het en dat ons ’n baie groot groep mense is nie?” “Wel,” sê Josua toe vir hulle, “as die bergagtige gebied van Efraim te klein is vir julle, is daar niks wat julle verhinder om die beboste gebiede van die Feresiete en die Refaïete vir julleself in te neem, dit te ontbos en daar te gaan bly nie.” “Die bergagtige gebied is beslis te klein vir ons,” het hulle geantwoord, “maar die probleem is dat die Kanaäniete wat in die vlaktes bly, almal ysterstrydwaens het waarmee hulle oorlog maak. Dit geld nie net die Kanaäniete wat in Bet-San en die omringende dorpies bly nie, maar ook dié wat op die Jisreëlvlakte bly.” Hierop sê Josua toe vir die stamme van Efraim en Manasse: “Julle is inderdaad ’n groot en sterk groep mense. Daarom sal julle meer as een deel kry. Die bosdele van die bergagtige gebied behoort ook aan julle. Ontbos soveel daarvan as wat julle wil en gaan woon daar. Wat die Kanaäniete betref, ek weet hulle is sterk en hulle het ysterstrydwaens, maar ek is seker dat julle sterk genoeg is om hulle uit die gebied uit te verdryf.” Toe die land uiteindelik onder die Israeliete se beheer was, het hulle ’n volksvergadering by Silo gehou en ook die tabernakel daar opgeslaan. Saam met hulle was die sewe stamme wat nog nie hulle deel van die land in besit geneem het nie. Toe vra Josua vir die Israeliete: “Hoe lank gaan julle nog wag om die gebied wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, julle eie te maak? Kies nou drie persone uit elkeen van hierdie stamme, dan stuur ek hulle om vir my ’n opname van hierdie gebied te gaan maak. Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Dit sluit die suidelike deel uit wat aan Juda behoort; ook die noordelike deel waar Josef se kinders bly. “Hulle moet vir my die grense van die sewe gedeeltes bring sodat ek die verdeling hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.” Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.” Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel. Die eerste stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Benjamin. Dit was die gebied tussen die gedeeltes van Juda en Josef. Hulle noordelike grens het by die Jordaan begin en loop dan al met die hang noord van Jerigo langs. Dan draai dit weswaarts oor die bergagtige gebied tot in die Bet-Awenwoestyn. Van daar af loop die grens suid na Lus toe (ook bekend as Bet-El) en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder. Dan draai die grens in ’n westelike rigting, suid van die berg reg teenoor Bet-Goron totdat dit doodloop by Kirjat-Baäl, ook bekend as Kirjat-Jearim. Hierdie stad het aan Juda behoort. Dit is die westelike grens. Die suidelike grens van Benjamin het by Kirjat-Jearim begin, van waar dit weswaarts afgeloop het in die rigting van Neftoag se waterbronne. Dan af na die voet van die berg wat uitkyk oor die vallei van Ben-Hinnom aan die noordekant van die vallei van Refaïm. Van daar af gaan dit af met die Hinnomvallei tot teen die hang suid van die stad van die Jebusiete tot by En-Rogel. Hier draai die grens weer noord in die rigting van En-Semes totdat dit uitkom by Gelilot, regoor die pas van Adummim. Hiervandaan gaan dit af in die rigting van die gedenkklip van Bohan die seun van Ruben. Dan loop die grens noord van die hang wat oor die Jordaanvallei uitkyk verby en dan af in die Jordaanvallei, verby die noordelike hang van Bet-Gogla, totdat dit doodloop by die noordelike punt van die Dooie See waar die Jordaan in dié see invloei. Die oostelike grens is die Jordaan. Dit is die grense van die gebied wat aan die families van die stam van Benjamin behoort het. Die stede wat aan die families in die stam van Benjamin behoort het, is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal, Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, Awwim, Para, Ofra, Kefar-Ammoni, Ofni en Geba, twaalf stede met hulle omliggende dorpe, asook Gibeon, Rama, Beërot, Mispa, Kefira, Mosa, Rekem, Jirpeël, Tarala, Sela, Elef, die stad van die Jebusiete, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat, altesaam veertien stede met hulle omliggende dorpe. Dit is die stede en die gebied wat die families van Benjamin se stam geërf het. Die tweede stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Simeon. Hulle gebied het ’n deel van dié van Juda ingesluit en is eintlik deur Juda se gebied omring. Dit het die volgende stede en dorpe ingesluit: Berseba, Seba, Molada, Gasar-Sual, Baäla, Esem, Eltolad, Betul, Gorma, Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim, Bet-Lebaot en Sarugen, dertien stede met hulle omliggende dorpe, verder ook die vier stede Ajin, Rimmon, Eter en Asan, met hulle omliggende dorpe, en ook nog al die kleiner dorpe in die omgewing van dié stede tot by Baälat-Beër en Rama in die suide. Dit was die eiendom van die families in die stam van Simeon. Simeon het ’n deel van Juda se grondgebied gekry omdat die gebied wat aan Juda toegeken was, eintlik te groot was vir die aantal mense in dié stam. Die derde stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Sebulon. Hulle gebied strek tot by Sarid. Van daar af loop die grens weswaarts tot by Marala en dan baie naby aan Dabbeset en die spruit oos van Jokneam verby. Aan die teenoorgestelde rigting van Sarid af loop dit oos tot by die grens met Kislot-Tabor, dan in die rigting van Daberat en van daar af op tot by Jafia. Hiervandaan gaan dit verder in ’n oostelike rigting tot by Gat-Hefer en Et-Kasin, totdat dit by Rimmon uitkom, van waar dit in die rigting van Nea draai. Dan draai die grens noord in die rigting van Gannaton totdat dit in die vallei van Jiftag-El doodloop. Daar was altesaam twaalf stede met hulle omringende dorpe, wat Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem ingesluit het. Hierdie dorpe en stede was in die gebied wat Sebulon se families as erfdeel gekry het. Die vierde stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Issaskar. Hulle gebied het bestaan uit Jisreël, Kesulot, Sunem, Gafarajim, Sion, Anagarat, Rabbit, Kisjon, Ebes, Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes. Verder gaan hulle grens teen Tabor, Sagasajim en Bet-Semes verby en loop uiteindelik dood teen die Jordaan. Daar is altesaam sestien stede met hulle omringende dorpe. Dié stede met hulle omringende dorpe was die gebied wat Issaskar se families as erfdeel gekry het. Die vyfde stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Aser. Hulle gebied het bestaan uit Gelkat, Gali, Beten, Aksaf, Alammelek, Amad en Misal. Aan die westekant gaan die grens teen Karmel en Sigor-Libnat verby. Waar die grens oos swaai, gaan dit na Bet-Dagon toe, dan teen Sebulon en Ge-Jiftag-El noordwaarts verby na Bet-Emek en Neïel toe. Van daar af loop dit aan na Kabul in die noorde en na Abdon, Regob, Gammon en Kana toe tot by Groot-Sidon. Dan swaai die grens om na Rama toe en tot by die versterkte stad van Tirus, dan om na Gosa toe totdat dit doodloop teen die Middellandse See. Aksib, Uma, Afek en Regob is van die stede wat bykom. Altesaam is daar 22 stede met hulle omringende dorpe. Dié stede met hulle omringende dorpe was die gebied wat Aser se families as erfdeel gekry het. Die sesde stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Naftali. Hulle grens begin by Gelef, by die groot eikeboom in Saänannim, en loop oor Adami-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, tot waar dit doodloop teen die Jordaan. Van daar af draai die grens wes na Asnot-Tabor toe en loop daarvandaan aan na Gukok toe, teen Sebulon aan die suidekant en teen Aser aan die westekant verby tot teen die Jordaan aan die oostekant. Die gebied sluit die volgende versterkte stede in: Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret, Adama, Rama, Hasor, Kedes, Edreï, En-Gasor, Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes, altesaam negentien stede met hulle omringende dorpe. Dié stede met hulle omringende dorpe was die gebied wat Naftali se families as erfdeel gekry het. Die sewende en laaste stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Dan. Hulle grondgebied het die volgende stede ingesluit: Sora, Estaol, Ir-Semes, Saälbim, Ajalon, Jitla, Elon, Timna, Ekron, Elteke, Gibbeton, Baälat, Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon, Me-Jarkon, Rakkon, asook die gebied regoor Joppe. Toe die mense van Dan van hulle grond af verdryf is, het hulle Lesem aangeval, die inwoners doodgemaak en die stad oorgeneem. Nadat hulle hulle daarin gevestig het, het hulle die stad se naam verander na Dan ter ere van hulle voorvader Dan. Dié stede met hulle omringende dorpe was die gebied wat Dan se families as erfdeel gekry het. Nadat al die stamme van Israel hulle eie deel van die land gekry het, het hulle ook vir Josua die seun van Nun ’n stukkie land gegee waarop hy kon bly. Volgens die Here se opdrag het hulle vir hom die stad gegee wat hy graag wou gehad het: Timnat-Serag in die Efraimsberge. Josua het hierdie stad herbou en daarin gaan bly. So het die priester Eleasar en Josua die seun van Nun saam met die familiehoofde in Silo in die teenwoordigheid van die Here aan die Israeliete hulle woongebiede toegeken. Die verdeling van die land is toe afgehandel. Toe sê die Here vir Josua: “Sê vir die Israeliete: Kies nou vir julle ’n aantal stede wat bekend sal staan as toevlugstede. Ek het die opdrag hieroor al in Moses se tyd gegee. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset iemand anders doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon daar kom vang en doodmaak uit weerwraak nie. Wanneer iemand na so ’n stad toe vlug, moet hy eers by die leiers van die volk sy saak gaan stel. Hulle tree daar by die ingang van die stad as regters op. As hulle tevrede is, sal hulle die persoon toelaat om in die stad in te gaan en daar te gaan bly. As die familie van die persoon wat doodgemaak is daar aankom, moet die persoon nie aan hulle uitgelewer word nie. Hy moet beskerm word, aangesien die slagoffer per ongeluk, en nie uit woede of met voorbedagte rade nie, doodgemaak is. So ’n persoon moet in hierdie toevlugstad bly totdat hy in ’n openbare verhoor in die stad onskuldig verklaar is. Die persoon moet daarna in daardie stad bly totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Daarna mag die persoon as vry mens terugkeer huis toe.” Die volgende stede is toe as vrystede aangewys: Kedes in Galilea wat op die berge van Naftali geleë is, Sigem op die berge van Efraim en Kirjat-Arba ook bekend as Hebron, op die berge van Juda. Aan die oostekant van die Jordaan, regoor Jerigo, is die volgende stede aangewys: Beser in die woestyngedeelte van die gebied van Ruben, Ramot in Gilead in die gebied van Gad, en Golan in Basan in die gebied van Manasse. Dit was die toevlugstede wat aangewys is vir die Israeliete, asook enige uitlanders wat saam met hulle in die land gebly het. Enigeen wat iemand per ongeluk doodgemaak het, kon daar gaan skuil vir beskerming teen die familie van die persoon wat doodgemaak is. Hulle kon daar bly terwyl hulle op ’n openbare verhoor gewag het. [1-2] By Silo in Kanaän het die leiers van die stam van Levi met die priester Eleasar, Josua en die leiers van die ander stamme gaan onderhandel en vir hulle gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon, asook weiding vir ons vee.” *** Daarom het die Israeliete in opdrag van die Here die volgende stede met weiding uit hulle eie grondgebied vir die Leviete gegee. Die eerste familiegroep wat blyplek gekry het, was die afstammelinge van die priester Aäron, wat lede was van die Kehatgroep uit die stam van Levi. Hulle het altesaam dertien stede gekry uit die gebiede van Juda, Simeon en Benjamin. Aan die res van die Kehatgroep is tien stede toegeken uit die gebiede van Efraim, Dan en die halwe Manassestam. Die Gersongroep het dertien stede gekry uit gedeeltes van Issaskar, Naftali en die ander helfte van die Manassestam se grondgebied. Aan die Merarigroep is twaalf stede toegeken uit die gebiede van Ruben, Gad en Sebulon. Die Israeliete het op grond van die Here se opdrag aan Moses hierdie stede met hulle weiding vir die Leviete gegee. [9-10] Die eerste groep Leviete aan wie stede toegeken is, was dié uit die nageslag van Aäron wat tot die Kehatgroep behoort het. Hulle het die volgende stede uit die gebiede van Juda en Simeon gekry: *** Kirjat-Arba of Hebron in die berggebiede van Juda met al die weivelde daar rondom. Die dorp is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Wat die lande van die stad en die omringende dorpe betref, was dié reeds aan Kaleb die seun van Jefunne toegeken. Saam met Hebron, een van die toevlugstede, het Aäron se kinders altesaam nege stede met hulle weivelde uit die gebiede van Juda en Simeon gekry: Libna, Jattir, Estemoa, Golon, Debir, Ajin, Jutta en Bet-Semes. Uit die gebied van Benjamin het hulle vier stede met hulle weivelde gekry: Gibeon, Geba, Anatot en Almon. Die priesters uit Aäron se nageslag het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gekry. Die Levietefamilies in die res van die Kehatgroep het vier stede met hulle weivelde uit die gebied van Efraim gekry. Dit was Sigem, een van die toevlugstede in die bergagtige gebiede van Efraim, Geser, Kibsajim en Bet-Goron. Hulle het ook vier stede met hulle weivelde uit die gebied van Dan gekry: Elteke, Gibbeton, Ajalon en Gat-Rimon. Uit die gebied van die halwe Manassestam het hulle die volgende twee stede met hulle weivelde gekry: Taänak en Gat-Rimmon. Die Kehatgroep het dus altesaam tien stede met hulle weivelde gekry. Uit die gebied van die ander helfte van die Manassestam is die twee stede Golan in Basan, wat een van die toevlugstede was, en Astarot saam met hulle weivelde aan die Levitiese families in die Gersongroep toegeken. Uit die gebied van Issaskar het hulle die vier stede Kisjon, Daberat, Jarmut en En-Gannim met hulle weivelde gekry. Hulle het ook vier stede met hulle weivelde uit die gebied van Aser gekry: Misal, Abdon, Gelkat en Regob; en uit die gebied van Naftali drie stede met hulle weivelde: die toevlugstad Kedes in Galilea, Gammot-Dor en Kartan. Die Gersongroep het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gekry. Aan die res van die Levietefamilies, dié in die Merarigroep, is vier stede elk met hulle weivelde uit die gebiede van Sebulon, Ruben en Gad toegeken. Uit die gebied van Sebulon was dit: Jokneam, Karta, Dimna en Nahalal; uit die gebied van Ruben: Beser, Jahas, Kedemot en Mefaät; en uit die gebied van Gad die toevlugstad Ramot in Gilead, Maganajim, Gesbon en Jaser. Die Merarigroep het dus altesaam twaalf stede met hulle weivelde gekry. [41-42] Uiteindelik het die Leviete 48 stede met hulle weiding besit uit die totaal van wat aan die Israeliete behoort het. *** So het Israel uiteindelik die hele land wat die Here aan hulle voorvaders beloof het in besit geneem en in die verskillende dele wat aan hulle toegeken is, gaan bly. Soos die Here vir hulle voorvaders beloof het, was daar nou vrede in die land. Die Israeliete kon hulle nou op hulle nuwe lewe toespits, want al hulle vyande is verslaan. Die Here het elke belofte nagekom wat Hy aan Israel gemaak het. Daarna het Josua die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam nader geroep. Toe sê hy: “Julle het alles gedoen wat Moses gevra het julle moet doen en julle het al my opdragte uitgevoer. Julle het nie julle broers in die steek gelaat nie, al het die inname van die land so lank geneem. Julle het elke opdrag van die Here julle God nagekom. Nou het die Here julle God sy belofte aan julle broers nagekom en hulle bly in vrede in hulle land. Julle kan nou teruggaan na julle eie land toe wat Moses vir julle gegee het, daar aan die oostekant van die Jordaan. Maar maak seker dat julle die gebooie en die wet wat Moses vir julle gegee het, nakom. Julle moet die Here julle God liefhê, volgens sy wil lewe, sy opdragte uitvoer, getrou wees aan Hom en Hom dien met alles binne-in julle.” [6-8] Toe het Josua hulle met sy seën huis toe gestuur en gesê: “Julle gaan as ryk mense huis toe met baie vee, silwer, goud, brons, yster en mooi klere. Gaan deel hierdie rykdom met julle broers wanneer julle by die huis kom.” Hulle is toe daar weg huis toe. Moses het mos die gebied oos van die Jordaan vir die een helfte van die Manassestam gegee en Josua die deel aan die westekant vir die ander helfte. *** *** Die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het die Israeliete by Silo in Kanaän agtergelaat en die terugtog aangepak na hulle eie gebied toe in Gilead. Hierdie gebied het aan hulle behoort, soos die Here vroeër vir Moses gesê het. Voordat die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam die Jordaan oorgesteek het, het hulle ’n groot en indrukwekkende altaar by Gelilot in Kanaän gebou. Toe die res van die Israeliete hoor dat hierdie stamme ’n altaar by Gelilot aan die westekant van die Jordaan in Kanaän gebou het, het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak. Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur. Saam met hom was daar ook tien leiers van die volk, een uit elke stam, elkeen ’n hoof van ’n familiegroep. Met hulle aankoms in Gilead het hulle vir die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam gesê: “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan. En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie? As julle gebied nie geskik is om in te aanbid nie, kom dan oor na ons kant toe waar die Here se tent staan. Dit is die teken van sy teenwoordigheid by ons. Op daardie plek aanbid ons Hom. En as julle grond nodig het om op te kom bly, is ons bereid om met julle te deel. Moet asseblief net nie in opstand kom teen die Here en ons dan ook daarby betrek deur ’n ander altaar te bou nie. Julle weet mos daar kan net een ware altaar vir die Here ons God wees. Onthou julle wat gebeur het toe Akan die seun van Serag hom vergryp het aan dit wat aan die Here gewy was? Die hele volk het daaronder gely. Dit was nie net hy wat gesterf het oor sy sonde nie!” Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê: “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak. As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis. Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid? Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie. Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie. Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’ Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!” Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel. Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.” Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer. Die Israeliete was tevrede met wat hulle gehoor het en hulle het God geloof. Hiermee was al hulle oorlogspraatjies ook op ’n end. Die mense van Ruben en Gad het die altaar “Getuie” genoem, “want,” het hulle gesê, “dit dien as getuie dat die Here God is.” Die jare het verbygegaan en Israel het rustig, sonder enige verdere probleme saam met hulle vyande in die land gebly wat die Here aan hulle gegee het. Teen hierdie tyd was Josua al baie oud. Hy het toe ’n volksvergadering belê met die leiers, die hoofde van stamme, die regters en die ampsdraers van die Israeliete. Hy sê toe vir hulle: “Ek is al baie oud. Julle het alles gesien en beleef wat die Here julle God tydens my leeftyd vir julle gedoen het. Julle het gesien hoe Hy namens julle teen julle vyande opgetree het. Ek het saam met die gebiede wat ek reeds verower het, ook die gebiede wat nog nie verower is nie, as besitting aan julle gegee: van die Jordaan af in die ooste tot by die Middellandse See in die weste. Hierdie land sal aan julle behoort, want die Here julle God sal al die mense wat nou daar bly, voor julle uit laat vlug. Julle sal daar bly, nie hulle nie. Dit is die Here julle God se belofte. [6-7] “Julle moet julle uiterste bes doen om dit wat in die wetboek van Moses geskryf staan, na te kom. Moenie enige deel daarvan verwaarloos nie, want dan kan julle dalk deur die vreemde volke wat tussen julle bly, mislei word om hulle gode te dien. Moet dit nie doen nie. Moenie eers die name van hulle gode noem nie, wat nog te sê ’n eed in hulle naam aflê of hulle dien. *** Bly altyd getrou aan die Here julle God soos julle tot nou toe was. Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Nie een van hulle was in staat om teen julle weerstand te bied nie. Een van julle sou genoeg wees om ’n oormag aan te durf, nie omdat julle so sterk is nie, maar omdat die Here julle God aan julle kant is, net soos Hy belowe het. “Ter wille van julleself moet julle die Here julle God liefhê. As julle aan Hom ontrou word en by die ander nasies wat nog onder julle woon, gaan bly en hulle gewoontes aanleer en met hulle ondertrou, moet julle vir seker weet dat die Here julle God julle nie langer sal beskerm nie. Trouens, hulle sal vir julle net so gevaarlik wees soos ’n strik vir ’n voël of ’n gat in die grond wat jy nie kan sien nie en waarin jy kan val en seerkry. As julle in hulle hande beland, sal dit voel of julle met ’n sweep geslaan word en of daar dorings in julle oë gevryf word. Dan sal julle permanent uit die land wat die Here julle God vir julle gegee het, weggejaag word. “Ek gaan binnekort sterf soos enige ander mens. En julle weet baie goed dat die Here elke belofte wat Hy nog aan julle gemaak het, vervul het. Nie een van sy beloftes het onvervuld gebly nie. Maar net soos die Here julle God elke goeie belofte wat Hy gemaak het, nagekom het, so seker sal Hy ook elke dreigement teen julle as julle ontrou is, laat waar word. As julle die rug vir Hom draai, sal daar nie een van julle in hierdie land oorbly wat Hy vir julle gegee het nie. As julle die Here julle God se ooreenkoms met julle verbreek deur ander gode te dien, sal Hy julle in sy woede straf. Dan sal dit nie lank wees nie, dan is daar nie meer een van julle oor in hierdie land wat Hy vir julle gegee het nie.” Josua het al die stamme van Israel by Sigem bymekaar laat kom. Toe het hy al die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers by die heiligdom in die teenwoordigheid van God laat vergader. Toe sê Josua vir die volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorouers aan die oorkant van die Eufraat gewoon. Daar het hulle ’n klomp vreemde gode aanbid. Een van daardie voorouers was Tera, Abraham en Nahor se pa. Ek het julle voorvader Abraham uit die gebied anderkant die Eufraat laat wegtrek en hom die hele land Kanaän laat deurtrek. Ek het vir hom ’n groot nageslag gegee. Sy seun was Isak. Isak het twee seuns, Esau en Jakob, gehad. Vir Esau het Ek die bergagtige gebied van Seïr gegee om in te bly, maar vir Jakob en sy kinders het Ek na Egipte toe laat trek. “Later het Ek vir Moses en Aäron na Egipte toe gestuur en die land met ’n klomp plae getref, maar vir julle het Ek as vry mense daar laat wegtrek. Ek het julle voorouers uit Egipte gelei, maar die Egiptenaars het hulle met strydwaens en gewapende perderuiters agtervolg. Toe hulle by die Rietsee aankom, het hulle my hulp gevra om daar deur te trek. Ek het dit toe donker laat word tussen hulle en die Egiptenaars. Julle het met julle eie oë gesien hoe Ek die Egiptenaars in die Rietsee laat verdrink het. Daarna het Ek julle in die woestyn laat intrek, waar julle lank gebly het. “Toe het Ek julle in die Amoriete se land, aan die oostekant van die Jordaan, laat intrek. Hulle wou teen julle oorlog maak, maar Ek het klaar vir julle die oorwinning gegee. Julle kon hulle land vir julle vat. Daarna wou die koning van Moab, Balak die seun van Sippor, teen julle oorlog maak. Hy het toe vir Bileam die seun van Beor gevra om julle te vervloek. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie. Trouens, Ek het hom gedwing om julle te seën en so het Ek julle van Balak verlos. “Van daar af het julle deur die Jordaan getrek tot by Jerigo, waar hulle teen julle oorlog gemaak het. Buiten hulle was daar ook die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en die Jebusiete wat teen julle oorlog gemaak het. Maar deur my toedoen het julle hulle almal verslaan. Daarom, toe die twee Amoritiese konings hoor dat julle op pad is, het hulle klaar moed opgegee. Dit was nie omdat hulle bang was vir julle swaarde en pyle en boë nie, maar omdat Ek aan julle kant was. Ek het vir julle ’n land gegee waarvan julle nie die lande bewerk het of die stede gebou het nie. Vandag bly julle in daardie stede en eet julle druiwe van wingerde en olywe van olyfbome wat julle nie self geplant het nie. “Daarom,” het Josua gesê, “eer nou die Here en dien Hom met alles binne-in julle. Raak ontslae van die afgode wat julle voorouers in Mesopotamië en in Egipte gedien het en dien die Here! As julle nie bereid is om die Here voluit te dien nie, besluit dan hier en nou wie julle wil dien: die gode wat julle voorouers in Mesopotamië aanbid het of die gode van die Amoriete, in wie se land julle nou bly. Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” Toe sê die volk: “Ons dink nie vir ’n enkele oomblik daaraan om ons rug vir die Here te draai en ander gode te dien nie! Die Here ons God het ons en ons voorouers van al die swaarkry daar in Egipte bevry. Ons het al die magtige wonders wat Hy gedoen het, met ons eie oë gesien. Die Here het ons beskerm, maak nie saak waar ons was of met watter mense ons te doen gekry het nie. Dit is Hy wat die Amoriete en al die ander nasies wat in hierdie land gebly het, verdryf het. Ons gaan beslis ook die Here dien; Hy is ons God!” Toe sê Josua vir die volk: “Julle moenie dink dit is so maklik om die Here te dien nie. Hy is ’n heilige God wat sy groot Naam beskerm. Hy verwag dat mense Hom reg moet dien. Hy gaan nie maar net elke keer julle sonde en julle opstandigheid oorsien nie. As julle julle rug vir die Here draai en agter ander gode aanloop, sal Hy teen julle draai en julle baie swaar laat kry, ten spyte daarvan dat Hy nog altyd net goed was vir julle. Hy sal julle vernietig.” “Glo ons, ons is vasberade om die Here te dien!” het die volk geantwoord. “Onthou, julle is self verantwoordelik vir hierdie besluit,” het Josua toe vir hulle gesê. “Dit is julle eie keuse om die Here te dien. Julle sal self daarvoor moet instaan.” “Dit is goed so,” het die volk geantwoord. “Nou goed, dan moet julle onmiddellik ontslae raak van al hierdie vreemde gode wat nog onder julle is,” het Josua geantwoord. “Sweer trou aan die Here, die God van Israel.” “Ons sal die Here ons God dien en luister as Hy met ons praat,” het die volk gesê. Toe het Josua daardie dag by Sigem ’n ooreenkoms tussen die volk en die Here gesluit. Hy het al die voorwaardes van hierdie ooreenkoms in die Wetboek van God neergeskryf. Om die volk aan hierdie ooreenkoms te herinner het Josua ’n groot klip gevat en dit onder die groot eikeboom langs die tabernakel neergesit. Toe sê hy vir die volk: “Hierdie klip is die getuie van alles wat die Here vir ons gesê het. As julle nie julle woord hou nie, sal hierdie klip God se getuie teen julle wees.” Daarna het Josua hulle almal huis toe gestuur. Nie lank hierna nie is die dienaar van die Here, Josua die seun van Nun, op die ouderdom van 110 jaar oorlede. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim, regoor die Gaäsberge, begrawe. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle dit nog bly doen terwyl die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir hulle gedoen het, nog geleef het. Die volk het Josef se liggaam wat hulle uit Egipte saamgebring het, in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob by die kinders van Gamor, die vader van Sigem, vir 100 stukke silwer gekoop het. Josef se nageslag het daar gebly. Aäron se seun Eleasar het ook gesterf. Hy is begrawe in die bergagtige gebiede van Efraim op Gibea, die dorp wat aan sy seun Pinehas behoort het. Na Josua se dood het die Israeliete vir die Here gevra: “Watter stam moet eerste teen die Kanaäniete gaan veg?” Die Here sê toe: “Stuur vir Juda, want Ek gee die land vir hulle.” Toe sê Juda se leiers vir hulle familie uit die stam van Simeon: “Kom veg saam met ons teen die Kanaäniete wat in die gebied bly wat ons gekry het om in te woon. Dan sal ons julle weer help om julle gebied in te neem.” Hulle is toe saam daar weg om te gaan oorlog maak. [4-5] Met die Here se krag het hulle die Kanaäniete en die Feresiete verslaan. By Besek het hulle teen koning Adoni-Besek geveg en 10 000 van sy soldate doodgemaak. *** Hy het probeer ontsnap, maar hulle het hom agternagesit. Toe hulle hom vang, het hulle sy duime en sy groottone afgesny. Hy sê toe: “Nou het God my my verdiende loon laat kry, want ek het self 70 ander konings se duime en groottone laat afsny en hulle soos honde behandel. Hulle moes onder my tafel sit en staatmaak op die stukkies kos wat ek vir hulle laat val het.” Hulle het hom Jerusalem toe gevat, waar hy later dood is. Juda het Jerusalem aangeval en dit verower. Hulle het al die inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek. Daarna het hulle teen die Kanaäniete gaan veg wat in die suidelike gebiede, die bergagtige gebiede en die woestynagtige dele gebly het. Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron, wat vroeër as Kirjat-Arba bekend was, gaan veg. Hier het hulle die magte van Sesai, Agiman en Talmai verslaan. Van hier af het hulle oorlog gaan maak teen die mense van die dorp Debir. Hierdie plek was vroeër bekend as Kirjat-Sefer. Hier het Kaleb gesê: “Die man wat dit regkry om Kirjat-Sefer in te neem, kan met my dogter Aksa trou.” Otniël, hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun, het dit reggekry; daarom het Kaleb hom met sy dogter Aksa laat trou. Na die troue het hy haar omgepraat om vir haar pa nog landbougrond te vra. Toe sy haar ouers gaan groet en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen, wat wil jy hê?” Sy sê toe vir hom: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook vir my ’n paar goeie waterbronne as huweliksgeskenk gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee. Toe Juda uit Jerigo wegtrek, het die Keniete (hulle was familie van Moses se skoonpa) saamgetrek tot in die Judese woestyn en by die mense van Arad gaan woon. Juda en Simeon het weer saamgespan en die Kanaäniete in Sefat verslaan. Hulle het die stad heeltemal verwoes; daarom word dit Gorma, of verwoeste stad, genoem. [18-19] Die Here het Juda gehelp en hulle het die berggebiede ingeneem asook die vlaktestede Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede. Juda kon egter nie die mense op die vlakte verdryf nie omdat hulle ysterstrydwaens gehad het, en daarom kon Juda hulle nie wen nie. *** Soos Moses vroeër beveel het, het Kaleb die dorp Hebron gekry. Hy het die mense verdryf wat daar gebly het. Hulle was die nakomelinge van die drie seuns van Enak. Die Benjaminiete kon nie daarin slaag om die Jebusiete, wat in Jerusalem gebly het, te verslaan nie. So het dit gekom dat die Jebusiete van toe af saam met hulle in Jerusalem bly woon het. Die Here het die afstammelinge van Josef gehelp toe hulle Bet-El aangeval het. Hulle het verkenners Bet-El toe gestuur. Vroeër was Bet-El ook bekend as Lus. Hulle het ’n man uit die stad sien kom en vir hom gesê: “As jy ons wys hoe om die stad in te neem, sal ons jou goed behandel.” Hy het hulle toe gewys wat die beste manier sou wees om dit te doen. Die afstammelinge van Josef het toe die stad ingeneem en al die mense daarin doodgemaak, behalwe hierdie man en sy familie. Hierdie man het later na die gebied van die Hetiete toe getrek en vir hom daar ’n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam. Die stam van Manasse kon nie daarin slaag om die dorpe Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met die dorpe rondom hulle in te neem nie, want die Kanaäniete wat in daardie gebiede gebly het, was te sterk. Later het die Israeliete sterker geword en toe het hulle dit reggekry om die Kanaäniete te dwing om vir hulle te werk. Tog het die Kanaäniete steeds in die gebied bly woon. Dieselfde het ook met die stam van Efraim gebeur. Hulle kon dit ook nie regkry om die Kanaäniete wat in Geser gebly het te verslaan nie. Daarom het die Kanaäniete saam met hulle daar bly woon. Ook die stam van Sebulon se aanslag op die dorpe Kitron en Nahalal was onsuksesvol. Al het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, het hulle steeds saam met hulle in hierdie gebiede gebly. Die stam van Aser kon ook nie die dorpe Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob inneem nie. Daarom dat die mense van Aser maar tevrede moes wees om saam met die Kanaäniete in hierdie gebiede te bly. Die stam van Naftali kon ook nie daarin slaag om die inwoners van Bet-Semes en Ben-Anat uit hulle dorpe te verdryf nie. Hulle moes maar saam met hulle daar bly, alhoewel hulle dié mense verplig het om vir hulle te werk. Die Amoriete het die stam van Dan die berge ingejaag en hulle nie toegelaat om op die vrugbare vlaktes te kom bly nie. Daarom het die Amoriete in die dorpe Ajalon en Saälbim en ook by die berg Geres bly woon. Later het die afstammelinge van Josef sterker geword. Toe het hulle die Amoriete gedwing om vir hulle te werk. Die grens van die Amoriete se gebied het vanaf Skerpioenpas tot by Sela geloop en van daar af in ’n noordelike rigting. Die Engel van die Here is van Gilgal af na Bokim toe om ’n boodskap vir die Israeliete te gee. Hy het vir hulle gesê: “Ek het julle uit Egipte uit laat trek na hierdie land toe soos Ek julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my ooreenkoms met julle breek nie, maar julle mag ook nie ’n kontrak met die inwoners van hierdie land sluit nie. Julle moet ook die altare vir hulle gode afbreek.’ Maar julle was ongehoorsaam! Hoekom? Omdat julle nie na My geluister het nie, gaan Ek nie meer hierdie mense voor julle uit laat vlug nie. Hulle sal vir julle ’n doring in die vlees wees en hulle afgode sal julle gedurig verlei.” Toe die Engel van die Here klaar gepraat het, het die Israeliete almal hardop begin huil. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Daar het hulle ook offers vir die Here gebring. Josua het die volk gestuur om die land te gaan inneem. Elke stam het in die gebied gaan bly wat aan hulle toegeken is. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle nog voor die Here gebuig solank die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het, geleef het. Nie lank hierna nie is Josua die seun van Nun, die dienaar van die Here, in die ouderdom van 110 jaar dood. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim regoor die Gaäsberge begrawe. Die leiers wat vir Josua oorleef het, is later almal dood. Na hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook nie geweet van al die wonderlike dinge wat Hy vir Israel gedoen het nie. Toe het die Israeliete sonde gedoen: hulle het die Baäls, die gode van ander volke, begin dien. Hulle het opgehou om die Here, die God van hulle voorvaders wat hulle uit Egipte gered het, te dien. Hulle het heeltyd agter ander gode aangeloop. Dit het die Here baie kwaad gemaak. Hulle het die rug vir die Here gedraai en die Baäls en die beelde van Astarte begin dien. Die Here was so kwaad dat Hy rowers toegelaat het om Israel se gebiede te plunder en te beroof. Hy het hulle aan hulleself oorgelaat en hulle nie langer teen hulle vyande beskerm nie. Israel was nou magteloos. Dit het nie saak gemaak teen watter vyand hulle geveg het nie. Die Here het gesorg dat hulle verloor, soos Hy belowe het. Hulle was later heeltemal moedeloos en in groot nood. Toe het die Here leiers gestuur om die Israeliete van hulle vyande te verlos. Maar hulle het nie na hierdie leiers geluister nie. Hulle was ongehoorsaam aan die Here en het ander gode aanbid. Hulle voorouers het na die Here geluister en Hom getrou gedien, maar hierdie nuwe geslag Israeliete het baie vinnig hulle rug vir Hom gedraai. Wanneer die Here vir hulle ’n nuwe leier gegee het, het Hy die leier gehelp om die volk teen hulle vyande te beskerm vir so lank as wat hierdie leier geleef het. Want die Here het sy volk jammer gekry as Hy hoor hoe hulle kla omdat hulle swaarkry onder hulle vyande. Maar ná so ’n leier se dood het die volk teruggeval in hulle ou gewoontes. Hulle het eintlik nog erger as die vorige geslag aangegaan. Hulle het agter ander gode aangehardloop en hulle aanbid. Hulle het hardkoppig geweier om op te hou met hulle sondige manier van leef. Toe het die Here baie kwaad geword vir Israel en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie aan my ooreenkoms wat Ek met hulle voorouers gemaak het, steur nie en nie na My luister nie, sal Ek nie een van die nasies wat na Josua se dood nog in die land oorgebly het ver uit die land verdryf nie. Inteendeel, Ek gaan hulle gebruik om Israel te toets. Ek wil kyk of hulle ook so gehoorsaam aan My sal wees soos hulle voorouers.” Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik uit die land verdryf nie. Hy het hulle nie aan Josua oorgelewer nie. Die Here het ’n klomp nasies in die land laat bly om die Israeliete wat nie teen die Kanaäniete geveg het nie te toets. Op hierdie manier wou die Here die Israeliete wat niks van oorlog geweet het nie, leer hoe om te veg. Hierdie volke is die Filistyne, met hulle vyf leiers, asook al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat in die berge van Libanon gebly het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat. Hulle is met rus gelaat om te sien of die Israeliete die Here se bevele wat Hy deur Moses aan hulle voorouers gegee het, sou gehoorsaam. So het dit gebeur dat die Israeliete tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gebly het. Later het daar ondertrouery tussen die Israeliete en hierdie nasies plaasgevind. Toe het die Israeliete hierdie nasies se gode begin dien. Die Israeliete het dinge gedoen waarvan die Here niks gehou het nie. Hulle het die Here hulle God vergeet en die afgodsbeelde van Baäl en die heilige pale van Asjera aanbid. Hieroor was die Here kwaad vir Israel. Daarom het Hy hulle agt jaar lank in koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië se mag oorgegee. Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Otniël. Hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun. Die Gees van die Here het van hom besit geneem en hy het Israel se leier geword. Hy het teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië oorlog gemaak en hom met die hulp van die Here verslaan. Daarna was daar 40 jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood. Die Israeliete het later weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Toe het die Here hulle in koning Eglon van Moab se mag oorgegee. Eglon het kragte saamgesnoer met die Ammoniete en die Amalekiete en saam het hulle Israel verslaan en Jerigo ingeneem. Die Israeliete was toe agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab. Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Ehud seun van Gera uit die stam van Benjamin. Ehud was linkshandig. Die Israeliete het hom met die belastinggeld na koning Eglon van Moab toe gestuur. Ehud het vir hom ’n swaard van 50 sentimeter lank gemaak en al twee kante van die swaard vlymskerp gemaak. Hy het die swaard aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak. Toe het hy die belastinggeld vir koning Eglon, wat ’n baie vet man was, gevat. Nadat Ehud die belastinggeld aan die koning oorhandig het, het hy die mense wat dit gedra het, teruggestuur huis toe. Hy het by die klipbeelde naby Gilgal omgedraai. Toe is hy terug na koning Eglon toe. Ehud sê toe vir hom: “U Majesteit, ek het ’n geheime boodskap net vir u!” Hierop het die koning vir sy amptenare gesê: “Stilte. Ons wil alleen wees!” en hulle is toe daar uit. Ehud het toe nader aan die koning gestap waar hy alleen in sy koel bovertrek gesit het, en vir hom gesê: “Ek het ’n boodskap van God af vir u.” Die koning het dadelik van sy troon af opgestaan en Ehud het met sy linkerhand die swaard, wat hy aan sy regterkant onder sy klere weggesteek het, uitgetrek en Eglon in sy maag gesteek. Die hele swaard, hef en al, het in die koning se maag ingegaan sodat die vet daaroor gepeul het. Die swaard het vasgesit en Ehud het dit net so in die koning gelos. Hy het die deure van die bovertrek toegemaak en gesluit. Daarna is hy met ’n ander uitgang daar uit. Na ’n ruk het Eglon se amptenare teruggekom. Toe hulle voel die deure is gesluit, het hulle gedink die koning is in die badkamer. Hulle het geduldig gewag, maar toe die koning te lank na hulle sin vat, het hulle bekommerd geraak, ’n sleutel gaan haal en die deur oopgesluit, net om die koning dood op die vloer aan te tref. Intussen het Ehud ontsnap. Hy is verby die klipbeelde op pad Seïra toe. Met sy aankoms in die bergagtige gebied van Efraim het hy die trompet laat blaas om die soldate bymekaar te maak vir oorlog. Die Israeliete het na hom toe gekom, en hy was hulle leier. “Kom saam met my,” het hy vir hulle gesê, “want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.” Hulle is toe saam met Ehud daar weg. Hulle het al die vlak dele van die Jordaanrivier toegemaak sodat niemand van Moab af daar kon deurkom nie. Hulle het toe die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle beste troepe doodgemaak. Hulle het niemand laat wegkom nie. Israel het Moab daardie dag onderwerp. Daarna was daar 80 jaar lank vrede in die land. Na Ehud het Anat se seun Samgar Israel van die Filistyne gered deur 600 van hulle met ’n sweep dood te slaan. Na Ehud se dood het die Israeliete weer dinge gedoen waarvan die Here niks gehou het nie. Die Here het hulle in koning Jabin, ’n Kanaänitiese koning, se mag oorgegee. Hy het in Hasor regeer. Sisera, sy weermaghoof, het in Garoset-Hagojim gewoon. Jabin het 900 ysterstrydwaens gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank genadeloos onderdruk. Daarom het hulle by die Here hulp gaan soek. Debora, die vrou van Lappidot, was op daardie stadium die leier van die Israeliete. Sy was ook ’n profeet. Sy het altyd onder die palmboom van Debora tussen Rama en Bet-El in die berge van Efraim gesit. Daar het die Israeliete na haar toe gekom om raad te vra en om hulle te help om hulle probleme op te los. Op ’n dag het sy vir Barak uit Kedes in Naftali laat roep. Hy was Abinoam se seun. Sy sê toe vir hom: “Hierdie opdrag kom van die Here die God van Israel: Maak vir jou 10 000 soldate bymekaar uit die stamme van Naftali en Sebulon en trek met hulle na die berg Tabor toe. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se weermag, met al sy strydwaens en sy soldate teen jou laat uittrek om teen jou te kom oorlog maak by die spruit Kison, maar Ek sal hom in jou mag oorgee.” Toe het Barak haar geantwoord: “Ek sal op een voorwaarde gaan, en dit is dat jy saam met my gaan. So nie, bly ek net hier!” “Dit is goed so,” het sy gesê, “ek sal saam met jou gaan. Maar aangesien dit jou keuse is, sal jy nie die eer vir die oorwinning kry nie. Die Here sal Sisera in ’n vrou se hande oorgee.” Debora is toe saam met Barak daar weg na Kedes toe. Barak het met 10 000 soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon na Kedes toe opgeruk en Debora het saam met hulle gegaan. Geber die Keniet, ’n afstammeling van Moses se swaer Gobab, het weggetrek van die ander Keniete af. Hy het sy kamp by die eikeboom in Saänannim in die omgewing van Kedes opgeslaan. Toe Sisera hoor dat Barak besig is om na die berg Tabor toe op te ruk, het hy sy 900 ysterstrydwaens en al sy soldate van Garoset-Hagojim af na die spruit Kison toe laat kom. Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Barak en sy 10 000 soldate is toe teen berg Tabor af om te gaan oorlog maak. Toe Barak en sy soldate hulle aanval, het die Here vir Sisera en sy hele leër, die voetsoldate en dié in die strydwaens, paniekbevange gemaak. Sisera het van sy strydwa afgespring en te voet weggehardloop. Barak het die soldate en die strydwaens in die rigting van Garoset-Hagojim agternagesit en hulle almal sonder uitsondering doodgemaak. Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!” Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood. Toe Barak daar aankom op soek na Sisera, het Jael na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Kom hier, dan wys ek jou die man wat jy soek.” Hy het haar die tent in gevolg en daar het hy Sisera gekry met die tentpen deur sy slaap. Op daardie dag het die Israeliete gesien hoe God vir Jabin die koning van die Kanaäniete verneder. Van toe af het hulle al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom uiteindelik heeltemal vernietig het. Op daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam hierdie lied gesing: “Toe Israel se leiers voorloop, het die volk hulle vrywillig en met blydskap gevolg. Prys die Here! Luister, konings! Hoor mooi, regeerders! Ek sing tot eer van die Here, ek eer die Here, die God van die Israeliete, met my lied. Here, toe U van die berge in Seïr af gekom het en oor die vlaktes van Edom opgetrek het, het die aarde gebewe onder u groot krag en die hemel het reën gegee. Die water het in strome uit die wolke geloop. Die berge het gesmelt van vrees voor die Here van Sinai, voor die Here, die God van Israel. “In Samgar seun van Anat en in Jael se tyd het mense die hoofpaaie vermy, toe het reisigers eerder ompaaie gebruik. Die stede in Israel het leeggestaan, sonder inwoners, totdat Debora as ’n moeder vir Israel op die toneel verskyn het. Vroeër, toe die volk nuwe gode gekies het om te dien, het daar oorlog uitgebreek. Maar nie een van die volk se 40 000 soldate het wapens gegryp om te veg nie. “Nou skaar ek my aan die kant van die ware leiers van Israel en by dié wat vrywillig kom help veg het. Loof die Here! Julle wat op wit donkies ry met mooi saalkleedjies, en julle wat te voet loop, julle moet praat oor God se oorwinning! “Luister! Die raserige skare by die fonteine vertel van die Here se oorwinnings, hulle praat oor die oorwinnings van sy volk! “Die volk van die Here kom bymekaar by die dorpshekke, hulle sing: ‘Kom, Debora, kom, kom sing ’n lied, kom! Maak gereed, Barak seun van Abinoam, vat jou krygsgevangenes weg.’ “Die mense uit die volk wat getrou gebly het aan God het na hulle leiers toe gekom. Die volk van die Here het na my toe gekom, gereed om te veg. Party het gekom uit Efraim, selfs ver uit Amalek uit. Ook Benjamin met sy mense was daar. Die leiers het uit Makir gekom, en die offisiere uit Sebulon. Die leiers van Issaskar het saam met Debora gekom, ja, Issaskar het gekom en Barak ook, en hulle het hom die vallei in gevolg. “Maar die stam van Ruben was verdeeld, hulle kon nie besluit wat om te doen nie. Hoekom het jy by die kampvuur bly sit, bly luister na die wagters wat hulle veetroppe roep? Ja, die stam van Ruben was verdeeld, hulle kon nie besluit wat om te doen nie. Gilead het aan die oostekant van die Jordaanrivier gebly, en waarom het Dan by die huis gebly? Aser het langs die kus bly sit, hom nie verroer uit hulle hawestad nie. Maar Sebulon was bereid om lewens te waag in die stryd. Naftali het die dood op die berge in die oë gekyk. “Die konings van Kanaän het gekom, hulle het by Taänak en die fonteine van Megiddo oorlog gemaak, maar hulle het nie oorlogsbuit saam met hulle teruggevat nie. Die sterre van die hemel het ook geveg; soos hulle deur die hemel beweeg, het hulle teen Sisera geveg. Die Kisonrivier, die eeue oue Kisonrivier, het die vyand meegesleur. “Moenie bang wees nie! Wees sterk! “Toe het die perde die aarde laat dreun soos hulle aangestorm kom. ‘Vervloek die mense van Meros,’ het die Engel van die Here gesê, ‘ja, vervloek hulle sonder om hulle jammer te kry, want hulle het nie vir die Here kom veg nie.’ “Gelukkig is Jael. Sy is Geber die Keniet se vrou, sy is gelukkiger as al die ander vroue wat in tente woon. Sisera het water gevra, sy het vir hom melk gegee; heerlike dikmelk in ’n pragtige beker. Toe het sy met haar linkerhand ’n tentpen gevat en met haar regterhand ’n hamer. Sy het vir Sisera daarmee geslaan, sy kop inmekaargeslaan, sy het die tentpen reg deur sy slape geslaan. Hy het voor haar voete inmekaargesak en net daar bly lê. Morsdood! “Sisera se ma het deur die venster bly kyk, sy het by die vensterraam bly staan en vra: ‘Waarom kom sy strydwa dan nie aan nie, hoekom hoor ek nie die geluid van sy strydwa se wiele nie?’ “Haar slimste raadgeefsters het haar geantwoord en sy het die woorde vir haarself bly herhaal: Hulle het ’n groot buit in die hande gekry, en hulle is besig om dit te verdeel: ’n meisie of twee vir elke soldaat, pragtige klere vir Sisera, pragtige gekleurde weefwerk en doeke vir my om te dra, dit is die buit. “Mag al u vyande so doodgaan, Here, maar mag dié wat U liefhet, wees soos die son wat opkom en met sy volle glorie oor die aarde skyn.” Hierna was daar 40 jaar lank vrede in die land. Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle sewe jaar lank in die mag van die Midianiete oorgegee. Die Midianiete het die Israeliete so wreed behandel dat hulle na die berge toe gevlug het waar hulle in grotte en ander moeilik bereikbare plekke gaan bly het. Elke keer as die Israeliete hulle oeste geplant het, het die Midianiete en die Amalekiete en van die ander mense uit die ooste hulle land binnegeval. Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat. Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het. Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek. Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek, het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was. Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.” Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.” Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!” “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.” Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.” Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.” “Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord. Gideon is terug huis toe, waar hy ’n jong bokkie gaargemaak en ’n brood gebak het. Vir die brood het hy ongeveer sestien kilogram meel sonder suurdeeg gebruik. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in ’n bakkie gegooi. Toe gaan hy terug na die Engel onder die eikeboom. Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen. Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg. Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!” Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.” Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af. Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.” Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen. Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop. Almal het gewonder: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle oral navraag gedoen het, het hulle ontdek dat dit Joas se seun Gideon was. Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!” Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!” Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.” Kort daarna het die Midianiete, die Amalekiete en die mense van die ooste ’n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit. Hulle het oor die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Jisreël. Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het die trompet laat blaas om die Abiësriete vir die oorlog op te roep. Hy het ook boodskappers na die gebiede van Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur om die soldate van hierdie gebiede op te roep om hom te volg. Hulle het toe na hom toe gekom. [36-37] Toe sê Gideon vir God: “As U my regtig gaan gebruik om Israel te verlos soos U belowe het, bewys dit vir my. Ek sit hierdie stukke wolmat op die dorsvloer neer. As die mat môre nat is van die dou en die grond rondom is droog, sal ek weet dat U my gaan help soos U belowe het.” *** Dit is presies wat gebeur het. Toe Gideon die volgende môre opstaan en die mat uitdroog, het hy ’n hele skottel vol water uitgedruk. Toe sê Gideon vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, maar ek wil graag nog een keer ’n guns vra. Kan ek vra dat die mat hierdie keer droog bly en die grond rondom nat van die dou moet wees?” Daardie nag het God gedoen wat Gideon gevra het. Die volgende môre was die mat kurkdroog, maar die grond was nat gedou. Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en sy soldate het een oggend vroeg opgestaan en tot by die fontein van Garod getrek, waar hulle kamp opgeslaan het. Die Midianiete se kamp was net noord daarvandaan in die vallei naby die koppie met die naam Moreh. Toe sê die Here vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek jou toelaat om met so baie soldate teen die Midianiete te veg, sal die Israeliete later spog dat hulle sterk genoeg was om op hulle eie die oorwinning te behaal. Daarom moet jy vir die manskappe by jou sê: “Dié wat bang en onseker is, moet eerder teruggaan huis toe.” Toe het 22 000 besluit om huis toe te gaan. Daar het net 10  000 soldate oorgebly. Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel soldate! Vat hulle af na die fontein toe, daar sal Ek hulle vir jou skei. Ek sal vir jou wys wie moet saamgaan en wie moet bly.” Gideon is toe met sy soldate af fontein toe. Toe hulle daar kom, sê die Here vir hom: “Deel die soldate in twee groepe. Maak ’n eerste groep uit al die soldate wat soos ’n hond water drink deur dit met die tong uit hulle hande op lek. Maak ook ’n tweede groep van al die soldate wat op hulle knieë gaan staan en water drink.” Drie honderd soldate het die water met hulle hande uitgeskep en so gedrink. Die res van hulle het op hulle knieë gaan staan om te drink. Toe sê die Here vir Gideon: “Met hierdie 300 soldate wat die water met hulle hande opgeskep het om te drink gaan Ek jou help en die Midianiete verslaan. Stuur die res van die manne huis toe.” Gideon het al die kos, trompette en ander nodige middels by hierdie soldate gevat en hulle toe huis toe gestuur. Uiteindelik was dit net hy en die 300 ander soldate wat oorgebly het. Die Midianiete se kamp was in die vallei net onder hulle. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op! Val die Midianiete se kamp aan, want ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy dalk bang is om hulle aan te val, vat jou dienaar Pura en gaan saam met hom na hulle kamp toe. Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip. Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.” Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!” Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.” Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee. Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen. As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’” Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek. Die ander twee groepe het presies dieselfde gedoen. Hulle het hulle fakkels in hulle linkerhand vasgehou en hulle trompette in die regterhand en hard geskree: “Die swaard vir die Here en vir Gideon!” Gideon se soldate het almal op hulle plekke rondom die kamp bly staan en kyk hoe die vyandelike soldate doodbang weghardloop. Want terwyl Gideon se soldate op hulle trompette geblaas het, het die Here die vyand se soldate onder mekaar laat baklei. Dié wat nie in hierdie geveg dood is nie, het in die rigting van Sereda tot so ver as Bet-Sitta gevlug en ander weer tot by die grens van Abel-Megola, naby Tabbat. Gideon het die soldate van die stamme Naftali en Aser en die hele Manassestam opgeroep om die vlugtende Midianiete te agtervolg. Hy het ook boodskappers na die bergagtige gebied van Efraim toe gestuur met die opdrag: “Kom af en val die Midianiete aan. Sny hulle af by die vlak dele van die Jordaanrivier tot by Bet-Bara sodat hulle nie kan ontsnap nie.” Die soldate van Efraim het dit gedoen. Hulle het die twee Midianitiese generaals, Oreb en Seëb, gevange geneem. Vir Oreb het hulle by die rots van Oreb doodgemaak en vir Seëb by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete verder agtervolg. Daarna het die soldate van Efraim die koppe van Oreb en Seëb vir Gideon gebring waar hy aan die westekant van die Jordaanrivier was. Toe vra die Efraimiete vir Gideon: “Waarom het jy ons geïgnoreer? Hoekom het jy ons nie ook laat kom toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle was baie omgekrap daaroor. Maar hy het vir hulle gesê: “Wat ek gedoen het, is niks in vergelyking met wat julle reggekry het nie. Selfs die klein bietjie wat die mense van Efraim gedoen het, is baie meer werd as alles wat my familie gedoen het. God het dan die twee generaals van die Midianiete, Oreb en Seëb, in julle mag oorgegee. Wat ek gedoen het, kan nooit daarmee vergelyk word nie.” Dit het hulle rustiger laat word. Teen hierdie tyd het Gideon met sy 300 soldate by die Jordaanrivier aangekom. Hoewel hulle baie moeg was, het hulle steeds die vyandelike soldate agtervolg. By Sukkot aangekom, het Gideon vir die mense gevra: “Gee asseblief vir my manskappe kos. Hulle is moeg, want ons is agter die Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, aan.” Die leiers van Sukkot sê toe vir hom: “Hoekom moet ons vir jou en jou manskappe kos gee? Julle het nog nie vir Sebag en Salmunna gevang nie.” Daarop het Gideon geantwoord: “Nou maar goed, maar nadat die Here Sebag en Salmunna aan my uitgelewer het, sal ek terugkom en julle uitmekaar kom skeur met doringtakke en haakdorings wat ek uit die woestyn gaan saambring.” Van daar af is hy verder na Pniël toe, waar hy dieselfde versoek vir kos aan die inwoners gerig het. Weereens het hy dieselfde antwoord as in Sukkot gekry. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.” Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood. Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het. Sebag en Salmunna het probeer vlug, maar Gideon het hulle agternagesit en hulle gevang. Dit het die hele leër paniekbevange gemaak. Op pad terug van die slagveld af het Gideon deur die pas by Geres gegaan. Daar het hy ’n jong man van Sukkot gevang. Tydens ondervraging het hy hom gedwing om die name van die 77 leiers en hoofde van Sukkot vir hom neer te skryf. Gideon is toe terug na die leiers van Sukkot toe. Daar aangekom, sê hy vir hulle: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my die vorige keer gespot het met die woorde: Het jy dalk al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou moeë soldate kos moet gee?” Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle ’n les geleer deur hulle goed toe te takel met doringtakke en haakdorings, soos hy belowe het. Hy het ook die wagtoring van Pniël platgeslaan en al die mans van die stad doodgemaak. Toe vra Gideon vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mense gelyk wat julle in Tabor vermoor het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk, dit het gelyk of hulle van koninklike afkoms was.” Toe sê Gideon: “Hulle was my eie broers. So seker as wat die Here leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle ook laat leef het.” Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat. Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.” Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle! Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra. “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi. Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie. Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af. Al die Midianiete is deur Israel verslaan. Hulle het nooit van hierdie neerlaag herstel nie. Hierna was daar tydens Gideon se leeftyd - so ongeveer 40 jaar lank - vrede in die land. Gideon seun van Joas is ná die oorlog terug huis toe. Hy het 70 seuns gehad, want hy het baie vroue gehad. Hy het ook ’n seun by sy byvrou in Sigem gehad. Sy naam was Abimelek. Gideon was al baie oud toe hy dood is. Hy is in sy pa, Joas die Abiësriet, se graf in Ofra begrawe. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin dien. Hulle het Baäl-Berit hulle hoofgod gemaak. Hulle het heeltemal van die Here hulle God, wat hulle van hulle vyande verlos het, vergeet. Ten spyte van al die goeie dinge wat Jerubbaäl, dit is nou Gideon, vir Israel gedoen het, het hulle nie enige respek aan sy gesin bewys nie. Op ’n dag het Gideon se seun Abimelek by sy ma se familie in Sigem gaan kuier. Hy het vir hulle en vir almal wat daar by hulle was, gesê: “Vra ’n bietjie vir die mense van Sigem: Wat sou julle verkies? Om al 70 Gideon se seuns as leiers te hê of eerder net een? Maar onthou net, ek is julle bloedfamilie!” Abimelek se familie het toe met sy voorstel na die inwoners van Sigem toe gegaan. Hulle het besluit om hom te volg aangesien hy, soos hulle gesê het, “een van ons is”. Hulle het vir hom ongeveer een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Hy het dit gebruik om vir hom ’n klomp leeglêers te huur om sy volgelinge te wees. Hy is toe saam met hulle daar weg na sy pa se huis toe in Ofra. Daar het hy al 70 sy broers, almal Gideon se seuns, op een klip doodgemaak. Die enigste een wat oorgebly het, was Jotam, Gideon se jongste seun, want hy het weggekruip. Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon. Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister! Op ’n keer het die bome bymekaargekom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees jy ons koning!’ Maar die olyfboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou olyfolie produseer, waarmee eer betoon word aan beide gode en mense, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Toe sê hulle vir die vyeboom: ‘Wees jy dan ons koning!’ Maar dié sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Toe sê hulle vir die wingerdstok: ‘Wees jy ons koning!’ Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, wat gode en mense gelukkig maak, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Uiteindelik het al die bome na die doringbos toe gedraai en gesê: ‘Wees jy dan ons koning!’ Die doringbos het geantwoord: ‘As julle my regtig as julle koning wil kroon, kom staan dan hier in my skaduwee. As julle dit nie wil doen nie, sal daar ’n vuur uit die doringbos uitgaan wat al die seders van die Libanon sal verbrand tot niks.’ “Dink julle julle was eerlik en opreg toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle Gideon en sy familie reg behandel? Het julle aan my pa die eer bewys wat hom toekom? My pa het ter wille van julle teen die Midianiete gaan veg en sy lewe in gevaar gestel sodat julle vry kon wees. Maar vandag het julle teen hom en sy familie in opstand gekom deur al 70 sy seuns op een klip dood te maak. Toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die mense van Sigem, net omdat hy julle familielid is. Maar as julle vandag so verskriklik eerlik is teenoor Gideon en sy familie, moet julle mos goed voel daaroor dat Abimelek julle koning is. Boonop moet hy ook bly wees daaroor. Aan die ander kant, as julle nie eerlik is nie, mag dit dan gebeur dat Abimelek se leierskap soos ’n vuur sal wees wat die inwoners van Sigem en Bet-Millo sal verbrand. En mag die inwoners van Sigem en Bet-Millo deur hulle optrede vir Abimelek soos ’n vuur wees wat groot verwoesting saai.” Daarna het Jotam gevlug en in Beër gaan bly, omdat hy bang was sy broer Abimelek maak hom dood. Abimelek het drie jaar oor Israel regeer. Toe het God spanning tussen Abimelek en die mense van Sigem laat ontstaan. Hulle het teen sy leierskap in opstand gekom. Dit het gebeur sodat Abimelek en die mense van Sigem, wat hom aangemoedig het om Gideon se 70 seuns dood te maak, die gevolge van hulle verskriklike dade sou dra. Die mense van Sigem het toe ’n hinderlaag teen Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Maar iemand het vir Abimelek daarvan vertel. In daardie tyd het Ebed se seun Gaäl en sy broers Sigem toe getrek. Na ’n ruk het hulle die mense van Sigem se vertroue gewen. Tydens een van die oesfeeste tot eer van hulle gode het hulle wyn gemaak. Hulle het in die tempel van daardie god feesgevier. Nadat almal goed geëet en gedrink het, het hulle Abimelek begin afkraak. Ebed se seun Gaäl het spottend gevra: “Watter soort mense is ons hier in Sigem dat ons Abimelek dien? Wie is hy in elk geval? Hy is net Gideon se seun met Sebul as sy goewerneur. Maar moet hulle nie eerder die mense van Gamor, Sigem se voorvader, se slawe wees nie? Waarom moet ons vir Abimelek dien? As ek in beheer was, sou ek van Abimelek ontslae geraak het. Ek sou hom uitgedaag en vir hom gesê het: Bring jou sterk leër en kom veg teen my!” Toe Sebul, die burgemeester, hoor wat Gaäl te sê gehad het, was hy woedend. Hy het stilletjies ’n boodskap na Abimelek gestuur en vir hom gesê: “Ebed se seun Gaäl en sy mense het in Sigem kom bly en hulle is besig om die stad en sy mense teen jou op te sweep. Bring jou soldate en kom kruip vannag in die veld buite Sigem weg. Môreoggend teen skemer moet julle die stad skielik aanval. As Gaäl en sy soldate teen jou probeer veg, moet jy hulle doodmaak.” Abimelek en sy soldate het toe in die nag in vier groepe verdeel en ’n hinderlaag teen Sigem opgestel. Toe Abimelek en sy soldate vir Gaäl by die stadshekke sien staan, het hulle uit hulle skuilplek gekom. Gaäl het hulle gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die berge af!” Maar Sebul het vir hom gesê: “Dis nie mense nie, dis sommer net die berg se skaduwee wat jy vir mense aansien!” Maar Gaäl het weer vir hom gesê: “Kyk mooi, daar kom mense van die heuwels af. En daar van die waarsêersboom se kant af is nog ’n groep aan die kom.” Toe sê Sebul ewe leedvermakerig vir hom: “Nou waar is jou groot mond dan nou? Jy is mos die een wat gesê het: ‘Wie is Abimelek dat ons sy onderdane moet wees?’ Wel, is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Hier is jou kans, vat nou jou soldate en gaan veg teen hulle.” Gaäl het toe die mense van Sigem gevat om teen Abimelek te gaan veg. Maar Abimelek het hom verslaan en hy moes vlug. Baie mense het daardie dag hulle lewe verloor. Die dooies het tot by die stad se hekke gelê. Abimelek het in Aruma gebly en Sebul het vir Gaäl en sy familie uit Sigem weggejaag en hulle nie langer toegelaat om daar te bly nie. Die volgende dag het Abimelek te hore gekom dat die mense van Sigem beplan het om teen hom te gaan oorlog maak. Hy het toe sy troepe gevat, hulle in drie groepe verdeel en ’n hinderlaag vir die mense van Sigem daar in die veld gelê. Toe Abimelek die soldate uit die stad uit sien kom, het hy en sy soldate uit hulle wegkruipplekke opgespring en hulle aangeval en doodgemaak. Terwyl Abimelek en sy groep vorentoe gestorm het om by die stad se hekke uit te kom om te keer dat die soldate weer die stad in vlug, het twee van sy ander afdelings soldate die mense in die veld aangeval en hulle doodgemaak. Die geveg het die hele dag lank aangehou. Uiteindelik het Abimelek die stad ingeneem. Hy het al die inwoners doodgemaak, die stad tot op die grond afgebreek en sout daaroor uitgegooi. Toe die leiers in Migdol-Sigem dit hoor, het hulle en hulle mense in die grafkelder in die tempel van Baäl-Berit gaan wegkruip. Iemand het vir Abimelek vertel dat die mense van Migdol-Sigem daar wegkruip. Hy is toe met sy soldate teen die berg Salmon uit. Hy het ’n byl gevat, ’n boomtak afgekap, dit op sy skouer gesit en vir sy soldate gesê: “Maak gou, doen wat ek gedoen het!” Hulle het toe elkeen vir hulle ’n tak afgekap en agter Abimelek aangeloop. Hulle het al die takke teen die grafkelder opgestapel waarin die mense weggekruip het en dit aan die brand gesteek. So het al die inwoners van Migdol-Sigem doodgebrand, ongeveer 1 000 mans en vroue. Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het die stad omsingel en dit ingeneem. In die middel van die stad was daar ’n sterk toring. Al die mense van die stad, mans en vroue en leiers, het daarheen gevlug. Hulle het hulleself in die toring toegesluit en toe op die dak van die toring gaan staan. Abimelek is toe na die toring toe om dit in te neem. Toe hy by die deur van die toring kom en dit aan die brand probeer steek, het ’n vrou wat op die dak gestaan het ’n meulsteen van die dak af gegooi. Dit het op sy kop te lande gekom en sy skedel gekraak. Hy skree toe vir die jong man wat sy wapens gedra het en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood! Ek wil nie hê hulle moet kan sê ’n vrou het my doodgemaak nie!” Die jong man het hom met sy swaard deurboor en hy is dood. Toe die Israeliete sien Abimelek is dood, het hulle omgedraai en huis toe gegaan. So het God vir Abimelek gestraf oor die onreg wat hy sy pa aangedoen het toe hy vroeër sy 70 broers vermoor het. God het ook die inwoners van Sigem vir hulle sondes gestraf. Alles het gebeur presies net soos Jotam gesê het. Na Abimelek se dood het Tola seun van Puwwa, die kleinseun van Dodo, tot Israel se redding gekom. Hy was ’n lid van die stam Issaskar en het in die dorp Samir in die berge van Efraim gebly. Hy was 23 jaar lank die leier van Israel. Na sy dood is hy in Samir begrawe. Na Tola se dood het Jaïr uit Gilead 22 jaar lank as leier in Israel opgetree. Jaïr het 30 seuns gehad wat elkeen op ’n jong donkie rondgery het. Hulle het ook 30 dorpe in die gebied van Gilead gehad wat steeds bekend staan as die tentdorpe van Jaïr. Na sy dood is Jaïr in Kamon begrawe. Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Hulle het die Baäls en die Astartes asook die gode van Sidon en dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne aanbid. Hulle het die rug vir die Here gedraai en Hom glad nie meer gedien nie. Die Here het kwaad geword vir die Israeliete en hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete. Van toe af het die Ammoniete die Israeliete in Gilead, oos van die Jordaan, agtien jaar lank laat swaarkry en hulle erg mishandel. Die Ammoniete het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en teen die stamme van Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid. Uiteindelik het die Israeliete tot die Here gebid. Hulle het vir Hom gesê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die rug vir U, ons God, gedraai en die Baäls aanbid.” Die Here antwoord hulle: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne, die mense van Sidon, Amalek en Maon julle laat swaarkry het, het julle my hulp gevra en Ek het julle gehelp. Ten spyte daarvan het julle nou weer die rug vir My gedraai en ander gode aanbid. Daarom gaan Ek julle nie weer help nie. Gaan huil by die gode wat julle vir julle uitgesoek het. Laat hulle julle help noudat julle in die moeilikheid is.” Die Israeliete het by die Here bly pleit en vir Hom gesê: “Ons het sonde gedoen! Doen met ons net wat U wil, maar red ons asseblief vandag!” Hulle het ontslae geraak van die ander gode en weer die Here aanbid. Die Here is deur hulle lyding aangeraak. Op daardie tydstip het die Ammonitiese weermag gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het in Gilead kamp opgeslaan. Die Israeliete het ook vir oorlog gereedgemaak en hulle kamp by Mispa opgeslaan. Die leiers van Gilead het vir mekaar gesê: “Wie gaan ons soldate in die oorlog teen die Ammoniete lei? Hy moet in elk geval dan die leier van al Gilead se mense word.” Jefta, ’n inwoner van Gilead, was ’n dapper soldaat. Hy was die seun van Gilead by ’n prostituut. Gilead het nog ander seuns ook gehad by sy eie vrou. Toe hulle grootgeword het, het hulle hulle halfbroer, Jefta, weggejaag. “Jy mag niks van ons pa erf nie,” het hulle vir hom gesê, “want jy is ’n ander vrou se kind!” Jefta het toe van sy broers af padgegee en in Tob gaan woon. Dit was nie te lank voordat ’n groot klomp nikswerd leeglêers by hom aangesluit en oral saam met hom gegaan het nie. ’n Ruk later het die Ammoniete besluit om teen die Israeliete te kom oorlog maak. Toe het die leiers van Gilead mense na Tob toe gestuur om vir Jefta te vra om hulle te kom help. Hulle het hom laat weet: “Ons wil hê jy moet ons leier wees sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” Jefta se antwoord was: “Julle het my so gehaat dat julle my gedwing het om my eie pa se huis te verlaat. Hoekom hardloop julle nou skielik na my toe as julle in die moeilikheid is?” “Omdat ons jou nodig het om saam met ons teen die Ammoniete te veg,” het hulle vir Jefta gesê. “Ons wil hê jy moet die leier van ons almal in Gilead wees.” Toe sê Jefta vir hulle: “So, dit beteken dat as ek saam met julle kom en die Here vir my die oorwinning oor die Ammoniete gee, dan word ek julle leier?” “Die Here is ons getuie,” het hulle gesê, “ons aanvaar dit, ons sal doen wat jy vra.” Jefta is toe saam met die leiers van Gilead daar weg. Hy het hulle leier en die aanvoerder van hulle leër geword. In Mispa het Jefta in die teenwoordigheid van die Here alles vir die mense herhaal wat die leiers vir hom gesê het. Jefta het toe boodskappers na die koning van Ammon toe gestuur om vir hom te vra: “Wat is jou probleem met ons? Waarom is jy besig om ons land binne te val?” Die koning van Ammon se antwoord was: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land by my gevat, die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van daar af die hele ent tot by die Jordaanrivier. Al wat ek vra, is dat julle my land in vrede teruggee.” Jefta het sy boodskappers met die volgende antwoord teruggestuur: “Ek wat Jefta is, sê vir jou jy praat nie die waarheid nie. Israel het nie Moab of Ammon se grond gesteel nie. Ek sal jou vertel wat gebeur het. Toe Israel uit Egipte weg is, het hulle deur die woestyn tot by die Rietsee getrek en van daar af verder tot hulle by Kades aangekom het. Van daar af het hulle boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en toestemming gevra om deur sy land te trek, maar hy wou dit nie toelaat nie. Hulle het presies dieselfde ding vir die koning van Moab gevra, maar hy wou ook niks daarvan weet nie. Daarom het die Israeliete in Kades gebly. Uiteindelik het hulle deur die woestyn, óm die gebiede van Edom en Moab getrek. Hulle het aan die oostekant van Moab kamp opgeslaan aan die oorkant van die Arnonrivier. Maar hulle het nooit oor die Arnonrivier in Moab se gebied ingegaan nie. Van daar af het Israel boodskappers na koning Sihon van die Amoriete toe gestuur. Hy het in Gesbon gewoon. Hulle het hom gevra om hulle toe te laat om deur sy gebied na hulle land toe te trek, maar Sihon het hulle nie genoeg vertrou om hulle deur sy gebied te laat trek nie. Trouens, hy het sy weermag by Jahas bymekaar laat kom en teen Israel begin veg. Maar die Here, die God van Israel, het vir sy volk die oorwinning gegee en hulle het die hele gebied van die Amoriete vir hulleself ingeneem, van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier. “Jy sien, dit was die Here, die God van Israel, wat die Amoriete se land vir Israel gegee het. Gaan jy dit nou probeer terugvat? Jy kan hou wat jou god Kemos vir jou gegee het. Maar ons hou alles wat die Here ons God vir ons gegee het. Of dink jy dalk jy is beter as Sippor se seun Balak, die koning van Moab? En tog het hy Israel nooit aangevat oor grond of teen ons probeer oorlog maak nie. Nou wil jy na 300 jaar die saak aanroer! Intussen bly Israel van toe af al in Gesbon en sy omringende dorpe en net so ook in Aroër met sy omringende dorpe en in die dorpe op die walle van die Arnonrivier. Waar kom jy nou skielik vandaan? Ek het niks aan jou gedoen nie. Maar die feit dat jy nou teen my kom oorlog maak, is verkeerd. Laat die Here wat regter is, besluit wie is reg: Israel of Ammon.” Die koning van Ammon het hom egter nie aan Jefta gesteur nie. Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom en hy het deur die gebiede van Gilead en Manasse getrek, verby tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy sy weermag teen die Ammoniete uitgelei. Jefta het ’n plegtige belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U vandag vir my ’n oorwinning oor die Ammoniete gee, sal ek die eerste persoon wat my uit my huis tegemoetkom ná my oorwinning oor die Ammoniete as ’n brandoffer aan U offer.” Jefta het die rivier oorgesteek om teen die Ammoniete te veg. Die Here het hom laat wen. Hy het hulle verslaan van Aroër af tot by ’n gebied naby Minnit; twintig stede altesaam. Ook by Abel-Keramim was daar ’n groot geveg totdat die Israeliete uiteindelik die Ammoniete totaal verslaan het. Toe Jefta by sy huis in Mispa aankom, het sy dogter, sy enigste kind, hom al dansende tegemoetgekom terwyl sy op die tamboeryn speel. Toe hy haar sien, het hy van angs sy klere van sy lyf afgeskeur. “Ag, my dogter!” het hy gekerm. “Jy breek my hart! Hoekom moet dit juis jy wees wat my hierdie smart veroorsaak? Ek het ’n gelofte aan die Here gemaak en ek kan nie nou op my woord teruggaan nie.” Sy sê toe vir hom: “As Pa Pa se woord vir die Here gegee het, moet Pa doen wat Pa belowe het, want die Here het Pa gehelp om Pa se vyande, die Ammoniete, te verslaan. Maar bewys my net een guns,” het sy gevra. “Laat my toe om twee maande lank berge toe te gaan om daar saam met my vriendinne te gaan treur dat ek as ’n maagd gaan sterf.” “Gaan gerus,” het hy gesê. Sy en haar vriendinne is toe daar weg berge toe om te gaan treur oor die feit dat sy ongetroud en kinderloos sou sterf. Na twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het sy gelofte teenoor die Here nagekom. Sy het as ’n maagd gesterf. So het die gebruik in Israel ontstaan dat jong Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor Jefta die man van Gilead se dogter. Die stam van Efraim het sy weermag op die been gebring en oor die Jordaanrivier na Safon toe getrek. Daar aangekom, het hulle vir Jefta gesê: “Waarom het jy alleen teen die Ammoniete gaan veg en ons nie ook gevra om jou te help nie? Nou gaan ons jou huis bo jou kop afbrand!” Toe sê Jefta: “Ek en my soldate was in ’n bloedige stryd met die Ammoniete gewikkel. Ek het julle laat roep, maar julle het nie opgedaag om my te help nie. Toe ek sien niemand daag op nie, het ek my lewe gewaag en alleen teen hulle gaan veg, en die Here het toe aan my die oorwinning gegee. Hoekom wil julle nou teen my kom oorlog maak?” Die leiers van Efraim sê toe vir hom: “Julle spul in Gilead is in elk geval niks anders as ’n klomp weglopers uit Efraim en Manasse nie.” Jefta het toe sy soldate uit Gilead bymekaargemaak en teen Efraim oorlog gemaak en hulle verslaan. Die soldate van Gilead het al die driwwe van die Jordaanrivier beset om te keer dat die soldate van Efraim kon terugvlug. As daar dan ’n Efraimitiese vlugteling aankom en vra om deurgelaat te word, het hulle vir hom gevra: “Kom jy van Efraim af?” As die persoon dan sê: “Nee, beslis nie,” het hulle vir hom gevra om die woord “Sjibbolet” uit te spreek. Die mense van Efraim kon nie die woord reg uitspreek nie en het “Sibbolet” gesê. As hy dit dan verkeerd uitspreek, het hulle die persoon gevat en hom net daar in die Jordaanrivier doodgemaak. In hierdie tyd het hulle 42 000 soldate van Efraim doodgemaak. Jefta was ses jaar lank Israel se leier. Na sy dood is hy in een van die dorpe van Gilead begrawe. Na Jefta het Ibsan uit Betlehem die leier van Israel geword. Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad. Hy het toegelaat dat sy dogters met mans trou wat nie deel van hulle stam was nie, en vir sy seuns het hy vroue van buite sy stam laat kom om met hulle te trou. Ibsan was sewe jaar lank Israel se leier. Met sy dood is hy in Betlehem begrawe. Na hom was Elon uit Sebulon tien jaar lank Israel se leier. Na sy dood is Elon in Ajalon in die gebied van Sebulon begrawe. Na hom het Hillel se seun Abdon Israel se leier geword. Hy was afkomstig uit Piraton. Hy het 40 seuns en 30 kleinseuns gehad. Hulle het 70 donkies gehad waarop hulle gery het. Hy was agt jaar lank die leier van Israel. Na sy dood is hy in Piraton op die berge van Amalek in die gebied van Efraim begrawe. Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle vir 40 jaar in die mag van die Filistyne oorgegee. Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan met die naam Manoag. Hy en sy vrou was kinderloos omdat sy nie swanger kon raak nie. Daar het toe ’n Boodskapper van die Here aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy kon nog nooit swanger word nie, maar binnekort gaan jy wel swanger word en geboorte gee aan ’n seun. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie. Soos ek gesê het, jy sal geboorte gee aan ’n seun. Sy hare mag nooit gesny word nie, want dié kind sal van sy geboorte af net vir God se diens opsy gesit wees. Dit sal hy wees wat die Israeliete uit die mag van die Filistyne red.” Die vrou het toe vir haar man gesê: “Daar het ’n Boodskapper van God by my aangekom. Hy het net soos ’n engel van God gelyk. Om die waarheid te sê, ek was nogal bang vir hom. Ek het nie vir hom gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het ook nie vir my gesê wat sy naam is nie. Maar hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy gaan geboorte gee aan ’n seun. Jy moet van nou af nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie, want die kind sal van sy geboorte tot sy dood aan God toegewy wees.’” Manoag het toe gebid en vir die Here gesê: “Here, stuur asseblief weer die man van God na ons toe sodat hy vir ons kan verduidelik hoe ons die kind moet grootmaak.” Die Here het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom waar sy alleen in die veld gesit het. Manoag was nie by haar nie. Daarom het sy vinnig na hom toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat nou die dag met my gepraat het, is weer hier!” Manoag is toe dadelik saam met sy vrou daar weg. By die man aangekom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat nou die dag met my vrou gepraat het?” “Ja, dit is ek,” het hy geantwoord. Manoag vra toe vir hom: “As jou belofte waar word, hoe moet die kind optree?” Die Boodskapper van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet seker maak dat sy alles doen wat Ek vir haar gesê het om te doen. Sy mag nie druiwe eet of wyn en sterk drank drink nie. Sy mag ook nie enige verbode kos eet nie. Sy moet net doen wat Ek vir haar gesê het.” Manoag sê toe vir die Boodskapper van die Here: “Bly nog so ’n rukkie hier, dan maak ons vir jou ’n bokkie gaar.” Die Boodskapper van die Here sê toe vir Manoag: “Al bly ek nog ’n ruk hier, sal ek in elk geval nie jou kos eet nie. Gebruik eerder die bokkie as ’n brandoffer vir die Here om vir Hom dankie te sê.” Manoag het nie besef dat dit die Here se Boodskapper is nie, en hy vra toe vir hom: “Wat is jou naam? Ek vra dit sodat ons aan jou eer kan bewys wanneer jou woorde waar word.” “Hoekom vra jy my Naam?” het die Boodskapper van die Here gevra. “In elk geval, al sê ek dit ook vir jou, sal jy dit nie verstaan nie.” Manoag het toe ’n bokkie saam met ’n bietjie graan as ’n offer op ’n klip neergesit. Toe doen die Here ’n wonder voor hulle oë. Terwyl die vlam van die altaar af opvlam die lug in, het die Boodskapper van die Here in die vlamme teruggegaan hemel toe. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle plat op die grond neergeval. Die Boodskapper het nie weer na hulle toe gekom nie, en Manoag het besef dat die Boodskapper ’n Engel van die Here was. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Nou sal ons sekerlik doodgaan, want ons het God gesien!” Maar sy het hom geantwoord: “As die Here van plan was om ons dood te maak, sou Hy nooit ons offers aanvaar het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike goed laat sien het en vir ons sulke goeie nuus gebring het as dit sy plan was nie.” Toe haar seun gebore is, het sy hom Simson genoem. Die kind het ouer geword en die Here het hom geseën. Die Gees van die Here het in hom begin werk in die omgewing van Magane-Dan, tussen Sora en Estaol. Op ’n keer is Simson na ’n dorp met die naam Timna toe. Daar het ’n sekere Filistynse meisie sy oog gevang. Hy is terug huis toe waar hy vir sy pa-hulle gesê het: “Ek het ’n Filistynse meisie in Timna gesien met wie ek wil trou. Tref asseblief die nodige reëlings.” Hulle vra toe vir hom: “Is daar nie onder jou eie mense ’n vrou van wie jy dalk hou nie? Hoekom moet jy nou onder die heidense Filistyne vir jou ’n vrou gaan soek?” Maar Simson het vir sy pa gesê: “Ek hou van haar, ek wil met haar trou.” Sy ouers het nie besef dat die Here agter alles sit nie, want die Here het ’n geleentheid gesoek om die Filistyne op hulle plek te sit. In daardie stadium het die Filistyne oor die Israeliete regeer. Simson en sy ouers is toe weg Timna toe. By die wingerde naby Timna het ’n jong leeu op Simson afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak en hy het die leeu met sy kaal hande uitmekaargeskeur asof dit ’n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie. In Timna het hy met die Filistynse vrou gaan gesels en hy het sommer baie van haar gehou. Later, op pad terug Timna toe vir die troue, het Simson van die pad afgedraai om na die leeu se geraamte te gaan kyk. Daar kry hy toe ’n swerm bye wat in die karkas nes gemaak het met heuning daarin. Hy het van die heuning uitgehaal en dit geloop en eet. Toe hy by sy pa-hulle kom, het hy vir hulle ook van die heuning gegee om te eet. Hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie. Simson is toe van daar af na die vrou se huis toe, waar hy ’n groot bruilofsfees gehou het volgens die gebruik van die jongmans van daardie tyd. Die Filistyne het 30 jongmans gestuur om hom te kom help. Simson sê toe vir hulle: “Kom ek vra julle ’n raaisel. As julle die raaisel binne die sewe dae wat die fees aanhou, kan oplos, sal ek vir julle 30 linnehemde en 30 stelle klere gee. Maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.” “Reg so,” het hulle gesê, “kom ons hoor wat is jou raaisel!” Hy sê toe: “Uit die een wat eet, kom iets te ete en uit die sterke kom iets soets.” Drie dae later kon hulle nog steeds nie met ’n antwoord na vore kom nie. Op die vierde dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Haal jou man oor om vir ons die raaisel se antwoord te gee. So nie, verbrand ons jou en jou familie. Of het julle ons dalk hierheen genooi om ons te beroof?” Simson se vrou het toe by hom gaan huil en gesê: “Jy het my nie lief nie, jy haat my! Jy het vir my vriende ’n raaisel gevra sonder om eers vir my te sê wat dit beteken.” “Maar ek het dit nie eens vir my pa-hulle vertel nie,” het hy vir haar gesê, “waarom sou ek vir jou die antwoord gee!” Sy het die hele feestyd by hom bly neul daaroor. Op die sewende dag was hy uiteindelik moeg daarvoor en het vir haar die antwoord gegee. Op die sewende dag van die fees, net voor sononder, het die mense van die dorp na Simson toe gekom en vir hom gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie by my vrou gaan neul het nie, sou julle nie die antwoord op die raaisel gekry het nie.” Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy is af na Askelon toe. Daar het hy 30 mans doodgemaak, hulle klere uitgetrek en dit vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was so kwaad oor wat gebeur het dat hy terug is na sy ouerhuis toe om daar te gaan bly. Die vrou het toe getrou met die man wat Simson se strooijonker was. ’n Ruk later, tydens die oestyd, het Simson weer vir sy vrou gaan kuier. Hy het ’n bokkie as geskenk vir haar saamgevat. Hy was van plan om by haar te gaan slaap. Haar pa wou hom egter nie toelaat nie. “Ek het gedink jy haat haar na wat gebeur het,” het hy gesê, “daarom het ek haar met jou strooijonker laat trou. Maar kyk, haar jonger suster is in elk geval baie mooier as sy. Jy kan met haar trou.” Toe sê Simson: “Hierdie keer kan ek regtig nie verantwoordelik gehou word vir wat ek aan die Filistyne gaan doen nie.” Hy is toe daar weg. Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Toe het hy fakkels gevat en tussen elke paar sterte ’n fakkel vasgemaak. Hy het die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die Filistyne se oeste ingejaag. Hy het al hulle koring afgebrand, dié wat nog in miede gelê het, sowel as dié wat nog op die lande was. Hy het ook hulle wingerde en hulle olyfbome aan die brand gesteek. Toe die Filistyne vra: “Wie het dit gedoen?” was die antwoord: “Simson, want sy skoonpa uit Timna het sy vrou vir sy strooijonker gegee.” Die Filistyne het toe gegaan en die vrou en haar pa gevat en hulle met hulle huis en al verbrand. Simson het toe vir hulle gesê: “Is dit hoe julle optree? Nou belowe ek julle ek sal nie ophou voordat ek julle almal terugbetaal het nie!” Hy het verwoed onder hulle ingeklim en baie van hulle doodgemaak. Daarna het hy in ’n grot by die rots van Etam gaan bly. Die Filistyne het toe kamp gaan opslaan in Juda en strooptogte teen die dorp met die naam Legi uitgevoer. Toe vra die mense van Juda vir die Filistyne: “Waarom val julle ons aan?” Hulle antwoord was: “Om vir Simson vas te trek en hom terug te betaal vir wat hy aan ons gedoen het.” Toe gaan 3 000 mense van Juda na die grot toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Besef jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat doen jy aan ons?” Hy het hulle geantwoord: “Ek het hulle net terugbetaal vir wat hulle aan my gedoen het.” Hulle sê toe vir hom: “Wel, ons het jou kom haal om jou aan die Filistyne uit te lewer.” Toe sê Simson vir hulle: “Belowe my eers julle sal my nie doodmaak nie.” “Goed,” het hulle gesê, “ons belowe ons sal jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons wil jou nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en van die grot by die rots van Etam af weggevat. Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne van blydskap gejuig en op hom afgestorm. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die toue om sy arms gebreek asof hulle garingdraadjies was. Dit het gelyk of die boeie sommer van sy hande afval. Simson het die kakebeen van ’n donkie wat daar gelê het, opgetel en 1 000 Filistyne daarmee doodgeslaan. Simson het toe spottend gesê: “Met ’n donkie se kakebeen het ek ’n hopie niks van hulle gemaak. Met ’n donkie se kakebeen het ek 1 000 mense doodgemaak.” Nadat hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en die plek Kakebeenshoogte genoem. Hierna was Simson baie dors en het hy vir die Here gesê: “U het nou hierdie groot oorwinning van my oor die Filistyne moontlik gemaak. Moet ek nou van die dors doodgaan en in die hande van dié klomp heidene val?” Toe het God water uit ’n fontein daar in Legi laat uitborrel en Simson kon sy dors les en so sy krag herwin. Daarom word die fontein Roepersfontein genoem. Dit is vandag nog in Legi. Simson was in die regeringstyd van die Filistyne twintig jaar lank die leier van Israel. Op ’n keer het Simson na Gasa toe gegaan. Daar het hy ’n prostituut raakgeloop en by haar geslaap. Die woord het gou die rondte gedoen dat Simson in die omgewing was. Die mense van Gasa het toe die huis omsingel en die hele nag lank vir hom by die stad se hekke gewag. Hulle het doodstil in die donker vir hom gesit en wag en by hulleself gedink: Wag maar, teen dagbreek maak ons hom dood. Maar Simson het net tot middernag bly lê. Toe staan hy op en gryp die toegesluite deure van die stadshekke en ruk hulle met slot en grendel uit hulle kosyne uit. Toe tel hy die hekke op sy skouers en loop met hulle die berg regoor Hebron tot bo uit. Daar het hy toe die hekke laat lê. ’n Ruk later het Simson verlief geraak op ’n vrou wat in die Sorekvallei gebly het. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Verlei vir Simson om jou te vertel waar sy krag vandaan kom. Vind ook uit hoe ons hom kan oorrompel om hom te boei sodat hy magteloos is. As jy dit doen, sal ons elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.” Delila het toe vir Simson gevra: “Sê tog vir my waar kom jy aan jou bomenslike krag. Wat sou ’n mens moes gebruik om jou so vas te maak dat iemand jou kan oorrompel?” Simson het haar geantwoord: “As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Die leiers van die Filistyne het toe vir haar sewe klam boogsnare gebring waarmee sy Simson vasgebind het. Intussen het sy ook vooraf van die mans in ’n ander vertrek in die huis laat wegkruip. Toe skree sy: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die boogsnare so maklik gebreek soos ’n garingdraad wanneer jy dit met ’n vlam brand. Die geheim van sy krag het steeds onbekend gebly. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het my vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou vir my waarmee ’n mens jou sou kon vasmaak!” Sy antwoord was: “As ek behoorlik vasgemaak word met splinternuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het toe nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en weer die mans soos die vorige keer in ’n ander vertrek laat wegkruip. Sy skree toe vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraad was. Toe sê Delila vir hom: “Jy het my weer vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou regtig vir my waarmee ’n mens jou kan vasmaak!” “Goed,” sê hy vir haar, “jy moet net my sewe haarlokke tussen die materiaal op jou weefstoel inweef en dit met ’n pen vasmaak, dan sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Terwyl hy geslaap het, het Delila sy sewe haarlokke tussen die materiaal in die weefstoel ingeweef en dit met ’n pen vasgesteek. Toe skree sy weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Hy het wakker geword en sy hare met een pluk uit die weefstoel losgeruk, pen en al. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg.” Sy het dae lank aangehou neul en kerm totdat hy dit later nie meer kon uithou nie. Hy het toe vir haar die waarheid vertel: “Van my geboorte af is my hare nog nooit gesny nie omdat ek aan God toegewy is. As my hare afgesny word, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het besef dat hy dié keer die waarheid gepraat het; daarom het sy hierdie boodskap vir die leiers van die Filistyne gestuur: “Kom nog een keer terug. Hierdie keer het hy my die waarheid vertel!” Hulle het toe teruggekom en die geld saam met hulle gebring. Sy het Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Toe roep sy ’n man om sy sewe haarlokke te kom afsny. Sy krag het hom onmiddellik begin verlaat. Sy skree toe weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Toe hy wakker skrik, het hy gedink: “Ek sal my net weer soos die vorige kere losruk.” Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom gevang en sy oë uitgesteek. Toe vat hulle hom Gasa toe waar hulle hom met ’n dubbele bronsketting geboei het. Terwyl hy in die tronk was, moes hy die meul draai wat die koring gemaal het. Maar daar in die tronk het sy hare weer begin groei. Die leiers van die Filistyne het ’n groot fees ter ere van hulle god Dagon gehou, waar hulle offers gebring en hom vereer het. “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee,” het hulle gesing. [24-25] Die Filistyne was baie bly, en hulle het gesê: “Gaan haal vir Simson dat hy ons kan vermaak!” Nadat hulle hom uit die tronk gehaal het, het hulle hom tussen twee stutpilare van die tempel laat staan. Toe die mense hom so sien staan, het hulle gesing: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, die vyand wat ons land verrinneweer het en so baie van ons doodgemaak het!” *** Simson het vir die helper wat hom gelei het, gesê: “Ek wil so staan dat ek teen die stutpilare van die tempel kan leun.” Die tempel was vol mense. Al die leiers van die Filistyne was daar. Daar was ook omtrent 3 000 mense op die dak van die tempel, besig om na Simson te kyk en die spot met hom te dryf. Toe bid Simson: “Here my God, sien my tog raak! O God, maak my nog hierdie een keer sterk sodat ek my op hierdie Filistyne kan wreek oor my twee oë!” Simson het die twee middelste stutpilare van die tempel tussen sy arms vasgevat, met al sy mag teen hulle gedruk en uitgeroep: “Laat my saam met die Filistyne doodgaan!” Hy het al sy krag ingespan en die tempel het inmekaargeval op die leiers van die Filistyne en al die mense daarin. Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy hele leeftyd. Daarna het sy broers en die res van sy familie gekom en sy liggaam kom haal. Hulle het hom teruggevat en hom tussen die dorpe Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf gaan begrawe. Simson was twintig jaar lank die leier van Israel. Daar was ’n man met die naam Miga wat in die Efraimsberge gebly het. Op ’n dag het hy vir sy ma gesê: “Ek het gehoor hoe Ma die persoon vervloek wat daardie dertien kilogram silwer van Ma gesteel het. Wel, hier is dit terug, want ek is die een wat dit gesteel het.” “Mag die Here jou seën omdat jy dit teruggegee het, my seun,” het sy gesê. Toe hy die silwer vir haar teruggee, het sy gesê: “Om te keer dat die vloek my seun tref, dra ek hierdie silwer aan die Here op. Vat dit nou vir jou, my seun, en gaan maak vir jou ’n afgodsbeeld daarvan.” Nadat hy die silwer vir sy ma teruggegee het, het sy ongeveer twee en ’n half kilogram daarvan gevat en dit vir ’n silwersmid gegee om ’n afgodsbeeld mee te maak. Toe die beeld klaar was, is dit in Miga se huis gesit. Miga het sy eie tempel by sy huis gehad. Daarin het hy ’n afgodsbeeld en ander huisgode gesit. Toe het hy een van sy seuns as priester aangestel. In daardie tyd het Israel nog nie ’n koning gehad wat oor hulle regeer het nie. Almal het gedoen net wat hulle wou. Op ’n dag het ’n jong man, ’n Leviet wat in Betlehem in Juda gebly het, maar nie daar gebore is nie, op ’n ander dorp blyplek gaan soek. Hy het toe by Miga se huis in die berge van Efraim aangekom. “Waar kom jy vandaan?” het Miga vir hom gevra. “Ek is ’n Leviet uit Betlehem in Juda,” het hy geantwoord, “en ek is op soek na ander blyplek.” “Bly by my, word my raadgewer en my priester. In ruil daarvoor sal ek jou elke jaar 114 gram silwer en kos en klere gee,” het Miga vir hom gesê. Die Leviet het besluit om dit te doen. Hy het later vir Miga soos ’n eie seun geword. Miga het die Leviet as sy persoonlike priester aangestel en hy het in Miga se huis gebly. “Nou weet ek die Here sal my seën,” het Miga gesê, “want ek het ’n Leviet wat my priester is.” In die tyd toe daar nog nie ’n koning in Israel was nie, het die stam van Dan na grond gesoek waar hulle kon gaan bly. Tot in daardie stadium het hulle nog nie ’n eie gebied gehad waar hulle kon bly nie. Die mense van Dan het vyf dapper mans uit die dorpe Sora en Estaol as hulle verteenwoordigers gestuur om die land te gaan verken. Hulle het toe by Miga se huis in die berge van Efraim aangekom en daar oornag. Hulle het die jong Leviet se aksent herken en vir hom gevra: “ Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Wat hou jou hier?” Hy het geantwoord: “Ek het ’n ooreenkoms met Miga. Hy betaal my en ek is sy priester.” Hulle sê toe vir hom: “Vra ’n bietjie vir die Here of ons suksesvol gaan wees.” “Gaan gerus voort,” het die priester gesê, “julle het niks om julle oor te bekommer nie, die Here is by julle op julle reis.” Die vyf mans is toe daar weg en het later by Lajis aangekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners ’n sorgvrye lewenswyse gehad het, soos die inwoners van Sidon gewoond was om te doen. Hulle was vredeliewende, rustige mense wat nie gedurig met ander volke moeilikheid gesoek het nie. Hulle was ook welvarend. Hulle het ver van die mense van Sidon af gebly en hulle het ook nie met die ander volke in die omgewing in aanraking gekom nie. Toe die vyf mans terug is in Sora en Estaol het hulle mense vir hulle gevra: “En toe, wat het julle gesien?” Hulle antwoord was: “Waarvoor wag julle nog? Kom ons val hulle aan. Ons het die land gesien, dis wonderlik. Ons moet dit dadelik gaan inneem. Moenie nog tyd mors nie! Julle sal sien as julle daar aankom, hierdie mense is houtgerus. Dis ’n wonderlike gebied. Daar is alles wat ’n mens se hart kan begeer, en die Here gee dit vir julle.” Ses honderd swaar gewapende soldate uit die stam van Dan het toe van Sora en Estaol af weggetrek om die land te gaan inneem. Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom staan die plek net oos van Kirjat-Jearim bekend as die kamp van Dan. Van daar af het hulle verder getrek tot by Miga se huis in die berge van Efraim. Die vyf mans wat vroeër die gebied van Lajis verken het, het vir die ander gesê: “Weet julle dat daar ’n afgodsbeeld en huisgode en nog ’n paar ander beeldjies in hierdie huis is? Ons dink dit is glashelder wat ons behoort te doen.” Hulle het toe afgedraai na Miga se huis toe waar die jong Leviet gebly het en vir hom gevra hoe dit met hom gaan. Die 600 gewapende soldate het by die hek bly staan, terwyl die vyf wat die land verken het, in die huis ingegaan en die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat het. Toe die priester, wat by die deur gestaan het, sien dat hulle die afgodsbeelde wegdra, het hy gevra: “Wat dink julle doen julle?” Hulle sê toe vir hom: “Bly liewer stil en kom saam met ons. Jy kan ons leermeester en priester wees. Dit is tog beter om die priester van ’n hele stam van Israel te wees as net vir een man.” Die idee het die jong priester aangestaan en hy het die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat en saam met die mense gegaan. Die klomp is toe daar weg met hulle kinders en vee en besittings aan die voorpunt. Toe hulle al ’n hele ent weg was, het Miga sy bure geroep en hulle het die mense van Dan agternagesit. Toe hulle hulle inhaal, het hulle op die mense van Dan begin skree. Dié het omgedraai en vir Miga gevra: “Vir wat gaan jy so te kere?” “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het en boonop my priester ook afgerokkel; ek het net mooi niks oor nie. Dan vra julle nog waarom ek so te kere gaan!” Die mense van Dan het vir hom gesê: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai maak nie. Netnou is hier ’n klompie mense wat besluit om hulle humeur te verloor en dan verloor jy en jou mense dalk julle lewe!” Die mense van Dan het omgedraai en verder getrek. Miga het besef dat hulle baie sterker was as die groep by hom; daarom het hy omgedraai en teruggegaan huis toe. Die mense van Dan is toe met die beelde en die priester na die niksvermoedende mense van Lajis toe. Daar aangekom, het hulle die mense doodgemaak en die stad tot op die grond afgebrand. Niemand kon hulle red nie, aangesien hulle baie ver van Sidon af was en hulle in elk geval nie kontak met die ander volke in die omgewing gehad het nie. Lajis was in die vallei van Bet-Regob geleë. Hierna het die mense van Dan die stad herbou en self daarin gaan woon. Hulle het die stad herdoop na Dan ter ere van hulle stamvader Dan, Jakob se seun. Hulle het die afgodsbeeld daar laat staan, en Gersom se seun Jonatan die kleinseun van Moses, en sy seuns het as hulle priesters opgetree totdat die mense in ballingskap weggevoer is. Miga se afgodsbeeld is daar aanbid vir die volle tydperk wat die tabernakel in Silo bly staan het. Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Daar was ’n Leviet wat in die afgeleë gebiede van die berge van Efraim gebly het. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda gaan haal. Hulle twee het probleme gehad en sy het teruggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem. Na ongeveer vier maande het hy besluit om te gaan kyk of hy haar kon oorreed om terug te kom. Hy het sy dienaar en twee donkies saamgevat. By die huis aangekom, het die pa hom die huis ingenooi en hom vriendelik verwelkom. Sy skoonpa het by hom aangedring om ’n ruk by hulle te bly. Hy het ingestem en drie dae daar gebly. Hulle het saam gekuier en geëet en die nag daar oorgeslaap. Op die vierde dag was die man reeds vroeg op en reg om terug te gaan huis toe. Maar sy skoonpa het vir hom gesê: “Eet eers iets, dit sal jou goed doen. Jy kan mos maar ’n bietjie later vertrek.” Hy en sy skoonpa het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die skoonpa sê toe vir hom: “Bly nog ’n nag hier en kuier lekker.” Die man het al op die punt gestaan om te vertrek, maar sy skoonpa het so by hom aangehou dat hy uiteindelik ingestem en die nag daar deurgebring het. Vroeg die môre op die vyfde dag het hy gereedgemaak om te vertrek. Die skoonpa sê toe weer: “Eet eers iets voor jy gaan; jy kan mos vanmiddag ook nog betyds wegkom.” Hulle het toe weer saam geëet. Toe hy en sy byvrou en sy dienaar later die middag gereedmaak om terug te gaan, sê sy skoonpa vir hom: “Kyk, dis al amper donker, jy kan maar net sowel nog ’n nag hier oorbly. Slaap hier oor en die geniet die aand saam met ons. Julle kan môre vroeg opstaan en teruggaan huis toe.” Hierdie keer was die Leviet vasberade om terug te gaan. Daarom het hulle klaargemaak en vertrek: hy, sy byvrou, sy dienaar en die donkies. Dit was al baie laat toe hulle in die omgewing van Jebus, dit is nou Jerusalem, aankom. Die dienaar sê toe: “Dit word nou te donker om verder te reis. Kom ons bly die nag in Jebus oor.” [12-13] Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.” *** Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom. Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie. Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly. Toe die ou man die reisiger op die stadsplein sien sit, vra hy vir hom: “Waarvandaan kom jy? En waarheen is jy op pad?” “Ons is op pad terug van Betlehem in Juda af na ’n afgeleë deel in die Efraimsberge,” het die Leviet geantwoord. “Ek is oorspronklik van daar af, maar ek het in Betlehem in Juda gaan kuier. Ons sit hier omdat niemand ons vir die nag ingenooi het nie. Maar ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en my dienskneg. Ons het alles wat ons nodig het.” Toe sê die ou man vir hom: “Julle is welkom in my huis, ek sal na al julle behoeftes omsien. Julle kan nie hier op die plein oornag nie. Dit is te gevaarlik.” Hy het hulle saam met hom huis toe gevat en na hulle donkies omgesien. Daarna het hulle hulle voete gewas en aangesit vir aandete. Hulle het net lekker begin kuier toe ’n klomp straatboewe van die stad daar aankom en aan die deur begin hamer. Hulle skree toe vir die ou man: “Bring die man uit wat daar by jou in die huis is. Ons wil seks met hom hê!” Maar die ou man het uitgegaan om met hulle te probeer redeneer en vir hulle gesê: “Asseblief, my vriende, ek smeek julle, moet tog nie so ’n afgryslike ding wil doen nie. Hierdie man is tog ’n gas in my huis, dit sou ’n skande wees. Kyk, hier is my dogter, sy is nog ’n maagd, vat haar en doen met haar net wat julle wil. Maar moenie so ’n skandelike ding aan hierdie man wil doen nie. ” Die mans wou egter nie na hom luister nie. Toe stoot die Leviet sy byvrou by die deur uit. Die boewe het haar gegryp en haar oor en oor verkrag en misbruik tot die volgende môre. Teen dagbreek het hulle haar laat gaan. Dit was nog skemer toe die vrou by die huis aangekom het waarin haar man was. Sy het voor die deur inmekaargesak en daar bly lê tot sonop. Toe die man later by die deur wou uitgaan om verder te reis kry hy sy byvrou waar sy voor die deur lê met haar hande na die deur toe uitgestrek. Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan gaan,” maar sy het hom nie geantwoord nie, sy was reeds dood. Hy het haar liggaam opgetel en op die donkie gesit, en huis toe gegaan. By die huis aangekom, het hy ’n mes gevat en haar liggaam in twaalf stukke opgesny. Hy het vir elke stam van Israel ’n stuk gestuur. Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het ons nog nooit beleef nie. Nog nie sedert Israel uit Egipte weggetrek het, het iemand al ooit so ’n ding gedoen nie. Ons sal ’n plan moet maak, iets moet hieraan gedoen word!” Toe het al die Israeliete van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide sowel as van die gebied van Gibea in die ooste in ’n groot vergadering by Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here. Al die stamme se leiers was by hierdie vergadering van die volk van God teenwoordig. Daar was ook 400 000 soldate met swaarde gewapen. Die boodskap het vinnig by die Benjaminiete uitgekom dat die ander stamme by Mispa bymekaargekom het. Die volk wou weet hoe so ’n ongehoorde ding kon gebeur het. Die Leviet wie se byvrou vermoor is, het vertel: “Ek en my vrou het in Gibea in die gebied van Benjamin aangekom terwyl ons op reis was en besluit om daar te oornag. Die mans van Gibea het in die nag gekom en die huis omsingel waarin ek was. Hulle wou my aanrand. Om die waarheid te sê, hulle wou my doodmaak, maar op die ou end het hulle my byvrou verkrag tot sy dood is. Toe het ek haar liggaam in twaalf stukke opgesny en een stuk aan elke stam van Israel gestuur; hierdie mans het ’n afskuwelike ding onder ons volk gedoen. Nou is ons almal hier, en ons is almal Israeliete. Wat gaan ons hieraan doen?” Die volk het eenparig verklaar: “Nie een van ons, maak nie saak waar jy bly nie, gaan terug huis toe nie. Wat ons wel gaan doen, is om Gibea ’n les te leer. Ons sal lootjies trek om te sien wie dit gaan doen. Ons sal so te werk gaan: een tiende van die mans van elke stam sal gekies word om te sorg dat die soldate genoeg kos het, die res sal Gibea gaan straf vir die vieslike ding wat hulle in Israel gedoen het.” Die volk het saamgestem. Hulle het toe gereedgemaak om die dorp aan te val. Die Israeliete het boodskappers na die stam van Benjamin toe gestuur om vir hulle te vra: “Watse verskriklike dinge vang julle aan? Lewer hierdie spul siek sondaars van Gibea aan ons uit dat ons hulle kan doodmaak en dié bose ding in Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin het hulle nie hieraan gesteur nie. Hulle soldate het uit al die stede in die gebied van Benjamin in Gibea bymekaargekom om teen Israel oorlog te maak. [15-16] Ses en twintig duisend van hulle beste soldate het in Gibea aangekom om hulle by die 700 linkshandige uitgesoekte troepe wat daar gebly het, aan te sluit. Hulle kon keer op keer ’n haar met ’n klip uit ’n slingervel raak gooi. *** Israel self het 400 000 goed opgeleide soldate gehad, dit is nou sonder om Benjamin se soldate by te tel. Voor die geveg is hulle Bet-El toe om God te raadpleeg. Hulle het vir God gevra: “Watter stam moet die aanval teen Benjamin lei?” “Die stam van Juda,” het die Here geantwoord. Vroeg die volgende môre is die Israelitiese leër daar weg en hulle het regoor Gibea gaan kamp opslaan. Hulle het hulle gevegsposisies ingeneem en gereedgemaak vir die geveg teen Benjamin. Benjamin se soldate het egter by die stad uitgestorm en voor die einde van die dag het hulle 22 000 Israelitiese soldate doodgemaak. [22-23] Die Israeliete het toe teruggegaan Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand. Toe vra hulle vir die Here: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak?” “Ja, gaan veg teen hulle,” het die Here geantwoord. Hierdie antwoord het hulle weer moed laat skep en hulle is terug stad toe, waar hulle weer die soldate in dieselfde posisies as die vorige dag ontplooi het. *** So het hulle die volgende dag weer gereedgemaak vir die geveg, en net soos die vorige dag het Benjamin se soldate by die stad uitgestorm. Hierdie keer het hulle 18 000 opgeleide soldate van Israel doodgemaak. Die hele Israelitiese leër is toe terug Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand, sonder om iets te eet. Hulle het ook brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. [27-28] Destyds was die verbondsark van die Here nog by hulle. Hulle het toe deur die priester Pineas (hy was Eleasar se seun en die kleinseun van Aäron) vir die Here gevra: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak, of moet ons ophou?” Die Here se antwoord was: “Gaan, môre gee Ek hulle in julle mag oor.” *** Die Israeliete het toe hinderlae rondom Gibea opgestel. Op die derde dag het ’n groep Israelitiese soldate, soos die vorige kere, regoor Gibea ontplooi. Toe die soldate van Benjamin uitkom om teen hulle te veg, het hulle hulle van die stad af weggelok. En net soos voorheen het hulle die Israelitiese soldate begin doodmaak op die paaie wat na Gibea en Bet-El toe gelei het. Hulle het omtrent 30 soldate doodgemaak. Die soldate van Benjamin het opgewonde geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Maar die Israeliete het voor die tyd onder mekaar afgespreek dat hierdie groep voor hulle sou uitvlug om hulle van die stad af weg te lei na die grootpaaie toe. Wanneer die grootste groep van die Israelitiese leër teruggeval het tot by Baäl-Tamar, sal die ander soldate wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring en die Benjaminiete van agter af aanval. Tien duisend uitgesoekte soldate het in hierdie stadium aan die geveg deelgeneem. Die geveg was hewig. Benjamin se soldate het nog nie besef dat hulle ’n ramp in die gesig staar nie. Die Here het Israel gehelp om Benjamin te verslaan. Hulle het op daardie dag 25 100 van Benjamin se dapperste soldate doodgemaak. Benjamin se leër het geweet dat hulle verslaan is. Hulle het besef dat die hoofgroep van die Israelitiese leër net teruggeval het om die soldate wat in die hinderlaag rondom Gibea gelê het, meer kans te gee om in posisie te kom. Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak. Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek. Sodra die hoofgroep ’n rookwolk uit die stad uit sien opgaan, moet hulle omdraai. Teen dié tyd het die Benjaminiete wat hulle agtervolg het, reeds die 30 Israeliete doodgemaak en het hulle nog vir mekaar geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Net toe het die rookwolk uit die stad uit opgestyg. Toe die Benjaminiete omkyk, was hulle verstom om te sien dat die hele stad aan die brand is. Die Israelitiese soldate het toe omgespring en hulle begin aanval. Dis toe dat die Benjaminiete vreesbevange geraak het, want hulle het besef dat ’n groot ramp hulle getref het. Hulle het die woestyn in probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agternagesit. Dit het nie gehelp nie, want hulle was vasgevang tussen die hoofleër en die soldate wat uit die stad gekom het. Hulle is net daar verslaan. Die Israeliete het die soldate van Benjamin omsingel en hulle genadeloos uitgeroei regoor Gibea aan die oostekant. Agtien duisend van Benjamin se beste troepe is daardie dag dood. Die ander het omgedraai en woestyn toe gevlug in die rigting van die rots van Rimmon. Van hulle is daar nog 5 000 langs die pad doodgemaak. Israel het die res tot by Gidom agtervolg en nog 2 000 soldate doodgemaak. Op daardie dag het Benjamin 25 000 dapper soldate verloor. Ses honderd soldate het dit reggekry om tot by die rots van Rimmon te kom, waar hulle vier maande lank gebly het. Die Israeliete het toe deur die res van die gebied van Benjamin getrek. Hulle het van stad tot stad gegaan en alles, mense, diere, elke lewende ding, doodgemaak. Hulle het elke stad in daardie gebied verbrand. Toe die Israeliete by Mispa bymekaar was, het hulle ’n belofte voor die Here afgelê: “Nie een van ons sal ons dogters met ’n Benjaminiet laat trou nie.” Hulle is toe na Bet-El toe. Daar het hulle tot in die aand in die teenwoordigheid van die Here gesit. Hulle het lank daar gesit en bitterlik gehuil en gesê: “Here, God van Israel, waarom het dit in Israel gebeur? Een van die stamme van Israel is op die punt om te verdwyn!” Vroeg die volgende oggend het die volk ’n altaar gebou waarop hulle brandoffers en vredesoffers geoffer het. Toe vra hulle: “Was daar een van die stamme wat nie teenwoordig was toe ons by Mispa in die teenwoordigheid van die Here vergadering gehou het nie?” Hulle het vooraf ’n belofte afgelê dat enigeen wat geweier het om te kom, doodgemaak moes word. Die Israeliete was baie jammer vir Benjamin. “Vandag het Israel een van sy stamme verloor,” het hulle gesê. “Wat kan ons doen om vroue in die hande te kry vir die mans uit die stam van Benjamin wat oorgebly het? Ons het mos gesweer dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.” In antwoord op hulle vraag of daar iemand was wat nie na die vergadering in Mispa toe gekom het nie, het dit geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead daar was nie. Nadat hulle ’n lys opgestel het van almal wat daar was, het hulle gesien dat niemand uit Jabes teenwoordig was nie. Die vergadering het toe 12 000 soldate na Jabes toe gestuur met die opdrag om almal, ook die vroue en kinders, dood te maak. “Dit is wat julle moet doen,” was hulle opdrag. “Maak elke man en elke vrou wat nie meer ’n maagd is nie, dood.” Hulle het 400 meisies in Jabes gekry wat nog maagde was. Hulle het hierdie meisies na die kamp by Silo in Kanaän gevat. Die Israelitiese vergadering het toe ’n vredesafvaardiging na die oorblywende Benjaminiete gestuur wat by die rots by Rimmon gebly het. Die Benjaminiete het teruggekom en die volk het vir hulle die meisies uit Jabes in Gilead as vroue gegee. Daar was egter nie genoeg meisies sodat elkeen ’n vrou kon kry nie. Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het die eenheid onder die stamme van Israel verbreek. Toe vra die leiers van Israel: “Waar gaan ons nog vroue vir die mans van Benjamin kry? Hulle eie vroue is almal doodgemaak. Israel mag nie een van sy stamme verloor nie. Ons moet ’n manier kry om die stam van Benjamin te laat voortbestaan. Ons kan hulle nie toelaat om met ons dogters te trou nie, aangesien ons ’n eed afgelê het wat sê dat enigeen wat sy dogter met ’n Benjaminiet laat trou, vervloek is.” Toe sê hulle: “Daar is mos jaarliks ’n fees in Silo tot eer van die Here.” Silo is noord van Bet-El af na Sigem se kant toe en suid van Lebona. Die leiers sê toe vir die Benjaminiete: “Gaan kruip in die wingerde weg en wag. As julle die meisies van Silo sien uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen vir julle ’n vrou gryp. Vat hulle dan saam met julle terug na die gebied van Benjamin toe. As die pa’s en broers by ons kom kla, sal ons vir hulle sê: ‘Probeer tog verstaan, ons kon nie genoeg vroue vir hulle kry toe ons Jabes verwoes het nie. Julle is nie skuldig daaraan dat julle die belofte aan God verbreek het nie, want julle het nie julle dogters vrywillig vir hulle gegee om mee te trou nie.’” Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Hulle het die vroue wat aan die feesvierings deelgeneem het, ontvoer en saam met hulle teruggevat na hulle eie grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gaan bly. Terselfdertyd is die res van die stamme van Israel ook daar weg, elkeen na hulle eie stam, familie en grondgebied toe. In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie en almal het gedoen net wat hulle wou. [1-2] Baie lank terug, in die tyd van die rigters voor Israel nog ’n koning gehad het, was daar hongersnood in die land. In dié tyd was daar ’n man met die naam Elimeleg. Hy het uit die gebied Efrata in die omgewing van Betlehem in Juda gekom. Hy het sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, gevat en ’n tyd lank in die land Moab gaan bly. Terwyl hulle daar gebly het, *** is Elimeleg dood. Naomi en haar twee seuns het toe alleen in die vreemde land agtergebly. Die twee seuns het met twee Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Omtrent tien jaar later is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi was toe sonder enige familie van haar eie in die land Moab. ’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land. Op pad terug Juda toe sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans. Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.” Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie! Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan? Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.” Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai. Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.” Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien. Daar waar Ma eendag doodgaan, wil ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die Here iets slegs aan my doen as iets anders as die dood ons twee sal skei.” Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat om terug te draai. Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!” “Moenie my Naomi noem nie,” sê sy toe, “noem my eerder Mara (wat bitter beteken), want vandat ons hier weg is tot nou toe het dit bitter swaar met my gegaan. Dit voel vir my of die Almagtige met al sy gewig op my kom druk het en ek nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Toe ek hier weg is, was my lewe nog vol. Ek het toe ’n man en kinders gehad, maar die Here het my dolleeg laat terugkom huis toe, sonder my gesin. Hoekom sou julle my dan nog Naomi wil noem? Dit voel vir my of selfs die Here die rug vir my gedraai het; asof die Here vir wie niks onmoontlik is nie, besluit het ek moet maar self verder regkom.” Dit is dan hoe Naomi en haar skoondogter Rut, ’n jong Moabitiese vrou, uit Moab na Betlehem teruggekom het. Hulle het aan die begin van die garsoes daar aangekom. In Betlehem was daar ’n bekende en invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimeleg. Op ’n dag vra Rut vir Naomi: “Sal dit reg wees as ek na die lande toe gaan en van die koringare optel wat agterbly as hulle klaar geoes het, as hulle my sal toelaat?” “Natuurlik, gaan doen dit gerus,” was Naomi se antwoord. Rut is toe uit na die lande toe waar sy are agter die werkers loop en optel het. Sy het toevallig op ’n stuk land beland wat aan Boas, die familielid van Elimeleg, behoort het. Intussen het Boas ook uit Betlehem daar aangekom. Hy en sy werkers het mekaar vriendelik gegroet, soos dit die gebruik was. Boas het vir Rut raakgesien en vir sy voorman gevra wie die vreemde vrou is wat op sy land are optel. Hierop het die voorman geantwoord: “Dit is Naomi se skoondogter wat saam met haar uit Moab uit teruggekom het. Sy het vanmôre al gevra of sy are agter die werkers mag optel. Van toe af werk sy nog aanmekaar. Sy rus nou vir die eerste keer ’n bietjie daar in die koelte.” Boas stap toe na Rut toe en sê vir haar: “As ek jou raad kan gee, moenie op ’n ander land gaan are optel nie. Bly by die vroue wat hier op my land werk. Kyk waar hulle are optel en volg hulle. Ek het ook die werkers gewaarsku om jou nie te pla nie. En as jy dors word, gaan drink gerus water daar by die kanne wat hulle vir hulleself volgemaak het.” Rut het baie beleefd dankie gesê. “Maar,” vra sy toe vir hom, “hoekom is u bekommerd oor my? Ek is tog maar net ’n vreemdeling hier.” Boas sê toe vir haar: “Ek het gehoor van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná jou man se dood, dat jy bereid was om jou ouers en jou geboorteland prys te gee om hier saam met haar tussen ’n klomp vreemde mense te kom bly. Mag die Here, die God van Israel, by wie jy hulp kom soek het, vir jou baie goed wees. Mag Hy jou goed versorg oor al die mooi dinge wat jy gedoen het.” “U is baie vriendelik, Meneer,” sê sy toe vir hom. “Ek is bly dat u so ordentlik met my praat al is ek nie een van u werkers nie.” Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.” Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe. Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie. Julle moet ook so nou en dan van die are uit die bondels uittrek en dit spesifiek vir haar los sodat sy dit kan optel. Moenie dit moeilik maak vir haar nie.” Rut het tot die aand toe are op die land opgetel. Toe sy later die are uitslaan om die graan en die halms te skei, was daar omtrent tien kilogram graan. Rut het die koring teruggevat dorp toe en vir haar skoonma gaan wys hoeveel sy die dag bymekaargemaak het. Sy het ook vir Naomi van die kos gegee wat van die middag se ete oorgebly het. Naomi was so verbaas dat sy sommer gevra het: “Waar kry jy so baie? Op wie se land het jy gewerk? Mag die Here baie goed wees vir die persoon wat jou gehelp het!” Rut het haar toe vertel wat sy gedoen het en dat sy op die land van ’n man met die naam Boas gewerk het. “Mag die Here Boas seën!” het Naomi gesê. “Die Here kom altyd sy beloftes na aan dié wat lewe en selfs ook dié wat al dood is. Weet jy, hierdie man is familie van ons. Om die waarheid te sê, hy is eintlik een van die mense wat veronderstel is om vir ons te sorg omdat ons nie meer mans of kinders het nie.” Toe sê Rut: “Dis nie al nie. Hy het ook gesê ek moet terugkom en elke dag saam met sy werkers are kom optel totdat die hele oes van die land af is.” Naomi sê toe vir Rut: “Dis goed so. Jy moet eerder saam met die vroue op Boas se land werk. Jy mag dalk net beledig word as jy op iemand anders se land gaan werk.” Rut het toe saam met die ander vroue in Boas se land are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het die hele tyd by haar skoonma gebly. Op ’n dag sê Naomi vir Rut: “Ons moet vir jou ’n man kry, sodat jy versorg kan word en jou eie huis en ’n huisgesin kan hê. Jy onthou vir Boas, die man saam met wie se werkers jy are opgetel het? Ek het mos vir jou gesê hy is familie van ons. Luister nou, hy gaan later die gars op die dorsvloer uitslaan en dan moet hy dit vir die nag oppas. Gaan bad en sit parfuum aan en trek jou mooiste klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar moenie dat Boas agterkom jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. As hy dan later gaan slaap, kyk mooi waar hy gaan lê, en as hy aan die slaap geraak het, tel die komberse op en gaan lê by sy voete. Hy sal verstaan dat jy versorging nodig het en vir jou sê wat jy moet doen.” Rut antwoord toe: “Ek sal doen wat Ma gesê het.” Rut is toe dorsvloer toe en het gedoen wat Naomi gesê het. Toe Boas klaar geëet en gedrink het, was hy baie opgeruimd en vrolik. ’n Rukkie later het hy langs die hoop gars gaan lê en aan die slaap geraak. Rut het stilletjies soontoe gegaan, die kombers opgelig en by sy voete gaan lê. Gedurende die nag het Boas wakker geword. Toe hy wou omdraai, was hy verbaas om te sien dat daar ’n vrou by sy voete lê. “Wie is jy?” wou hy weet. “Ek is Rut,” antwoord sy toe. “Omdat u familie van my skoonpa is, is u ook verplig om my te help versorg. Trou met my, asseblief.” “Mag die Here goed wees vir jou,” sê hy toe. “Wat jy nou doen, is ’n nog groter liefdesdaad as die liefde wat jy aan jou skoonma bewys het. Jy kon maklik vir jou ’n jong- man gaan soek het, of hy nou ryk of arm was, dit maak nie saak nie. Maar jy het dit nie gedoen nie. Moenie jou verder bekommer nie, ek sal doen wat jy vra. Almal in die dorp ken jou in elk geval as ’n eerlike en goeie vrou. Daar is net een probleem. Dit is waar dat ek ’n familielid is wat ’n plig het om jou en jou skoonma te versorg, maar daar is iemand anders wat nog ’n nader familielid is as ek en hy is in die eerste plek vir julle verantwoordelik. Bly vannag hier. Môreoggend sal ons uitvind of hy vir jou wil sorg of nie. As hy dit wil doen, is dit goed so. So nie, sal ek met jou trou, so seker as die Here lewe, ek belowe dit. Bly nou maar hier tot môreoggend, dis veiliger.” Sy het toe daar gebly en by Boas se voete gelê en slaap tot die volgende oggend. Vroeg, nog voor sonop, het sy opgestaan en huis toe gegaan voordat iemand haar dalk kon herken. Want Boas wou in elk geval nie hê die mense moes weet ’n vrou was by die dorsvloer nie. Voor sy loop, het Boas vir haar gesê om die los baadjie wat sy bo-oor haar klere aangehad het vir hom te bring en dit op die grond oop te gooi. Hy het toe ongeveer twintig kilogram gars daarin gesit, dit toegedraai en haar gehelp om dit op te tel. Sy is toe terug dorp toe. By Naomi aangekom, vra dié: “En toe, Rut, hoe het dit gegaan?” Rut het vir Naomi alles vertel wat Boas gedoen het, en bygevoeg: “Hy het ook vir my hierdie klomp gars gegee sodat ek nie met leë hande hier by Ma aankom nie.” Naomi sê toe vir haar: “Wees nou maar net geduldig totdat ons sien wat gebeur. Boas sal nie rus voordat hy hierdie saak vandag nog opgelos het nie.” Intussen het Boas na die bymekaarkomplek by die ingang van die dorp toe gegaan en daar gaan sit en wag. Toe Elimeleg se naaste familielid, die een oor wie Boas met Rut gepraat het, daar verbykom, het Boas hom geroep en gesê: “Vriend, kom sit hier by my; ek wil graag met jou praat.” Die man het toe nader gestap en gaan sit. Boas het ook tien leiers van die dorp gevra om as getuies by hulle te kom sit. Boas sê toe vir die familielid: “Toe Naomi van Moab af teruggekom het, het sy besluit om die stuk grond wat aan ons familielid Elimeleg behoort het, te verkoop. Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.” Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.” Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.” Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.” In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil. Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee. Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het. Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.” Die leiers en die ander mense wat by die ingang van die dorp bymekaar was, het toe gesê: “Ons is getuies! Mag die Here Rut seën met baie kinders soos dié van Jakob se twee vroue, Ragel en Lea. Mag jy ’n belangrike man wees in Efrata. En mag jy in Betlehem iemand wees na wie die mense opsien. Mag die Here vir jou kinders by hierdie jong vrou gee, wat net so baie en so gelukkig sal wees soos dié van ons voorvader Peres, die seun van Tamar en Juda.” Boas het toe met Rut getrou en nadat hy by haar geslaap het, het die Here haar swanger laat word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun. Die Here was baie goed vir haar. Toe sê die vroue vir Naomi: “Loof die Here! Hy het vandag vir jou ’n kleinseun gegee om vir jou te sorg. Mag sy naam altyd in Israel voortleef deur sy kinders. Jou skoondogter het jou baie lief. Sy het meer vir jou gedoen as wat sewe seuns ooit sou kon doen. Mag hierdie kleinseun wat sy nou vir jou gegee het, jou weer opgewonde oor die lewe maak omdat jy weet dat daar iemand sal wees wat vir jou sal sorg as jy die dag oud is.” Naomi het hierdie kleinkind van haar met soveel liefde versorg asof hy haar eie kind was. Die buurvroue het toe gesê: “Uiteindelik het Naomi weer ’n seun!” Die kind se naam was Obed. Obed was Isai se pa en Dawid se oupa. Van Peres af lyk hulle familie so: Peres was Gesron se pa. Gesron se seun was Ram en hy was die pa van Amminadab. Amminadab het ’n seun gehad met die naam Nagson en Nagson was die pa van Salmon. Salmon was Boas se pa en hy was weer Obed se pa. Obed was Isai se pa en Isai se seun was Dawid. Daar was eenkeer ’n man met die naam Elkana. Hy het in Ramatajim in die Efraimsberge gebly. Sy pa se naam was Jerogam; sy oupa was Elihu en sy oupagrootjie was Tohu. Hulle was van Suf se familie wat van Efrata af gekom het. Elkana het twee vroue gehad. Die een met wie hy eerste getroud is se naam was Hanna. Die ander vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. Elkana het gereeld een keer ’n jaar met sy vroue en kinders na die tempel in Silo gegaan om voor die magtige Here te kniel en vir Hom te offer. Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, was die Here se priesters in Silo. Elke keer as Elkana ’n dier geoffer het, het hy dele van die gaar vleis vir Peninna en al haar seuns en dogters gegee, maar vir Hanna het hy ’n spesiale deel gegee, want hy was vir haar die liefste, al het die Here nie vir haar kinders gegee nie. Dan het Peninna, wat nie van Hanna gehou het nie, haar gespot oor die Here nie vir haar kinders gee nie. Die gespot het Hanna verskriklik ontstel, want dit het elke jaar gebeur wanneer sy na die tempel van die Here toe gegaan het. Peninna het haar só gespot dat sy op ’n dag begin huil het en nie wou eet nie. Elkana sê toe vir haar: “Hoekom huil jy? En hoekom eet jy nie? Waaroor is jy so omgekrap? Is ek nie vir jou beter as tien kinders nie?” Die priester Eli het gewoonlik op ’n stoel gesit by die deurkosyn van die tempel. Toe die familie klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Sy was sielsongelukkig. Sy het tot die Here gebid en terwyl sy vreeslik huil, het sy ’n belofte gemaak. Sy het gesê: Magtige Here, ek is U nederige diensmeisie. As U regtig my moeilike omstandighede raaksien en my sal onthou en my nie vergeet nie en vir my ’n seunskind gee, sal ek hom vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee. Sy hare sal nooit geskeer word nie. Terwyl sy so aanhoudend voor die altaar bid, het Eli haar mond dopgehou. Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: “Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!” “U maak ’n fout, Meneer,” antwoord Hanna. “Ek het nie wyn of enige sterk drank gedrink nie. Ek is ’n baie ongelukkige vrou en ek het maar net my hart voor die Here uitgepraat. Moet asseblief nie dink dat ek, ’n nederige mens, sommer ’n nikswerd vrou is nie. Dit is omdat ek bekommerd en ontsteld is dat ek so lank gebid het.” Eli sê toe vir haar: “Mag dit met jou goed gaan, en mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie. Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink. Binne drie maande het Hanna ’n baba verwag. Toe die seuntjie gebore is, het sy hom Samuel genoem, “want ek het die Here gevra om hom vir my te gee,” het sy gesê. Toe Elkana die volgende jaar met sy familie Silo toe gaan om die jaar se offer vir die Here te bring en om ’n gelofte wat hy afgelê het, na te kom, het Hanna nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer die kind nie meer aan my drink nie, sal ek hom vat en hom vir die Here gaan gee. Dan sal hy vir altyd daar bly.” Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy goeddink, en mag die Here jou help.” Hanna het by die huis gebly en haar kind versorg totdat hy nie meer aan haar gedrink het nie. Net nadat sy die kind gespeen het, toe hy nog baie klein was, het Hanna hom saamgevat na die tempel van die Here in Silo. Hulle het ook ’n drie jaar oue bulkalf, omtrent twintig kilogram meel en ’n groot kruik vol wyn saamgevat. Nadat hulle die bulkalf geslag het, het hulle die kind na Eli toe gevat. “Verskoon my, Meneer,” het Hanna gesê, “sowaar as wat u leef, ek is die vrou wat hier by u tot die Here gestaan en bid het. Dis vir hierdie kind dat ek gebid het, en die Here het vir my gegee wat ek vir Hom gevra het. Nou gee ek hom terug aan die Here. Solank hy lewe, is hy die Here s’n.” Samuel het toe daar by die altaar op sy knieë gaan staan. Hanna het gebid en gesê: Ek is opgewonde oor wat U, Here, gedoen het. U, Here, het my sterk gemaak. Ek lag as ek aan my vyande dink. Ek is so bly dat U my gehelp het! Daar is geen god soos U nie. Ja, daar is geen god buiten U nie. Daar is nie nog ’n rots soos ons God nie. Mense moet ophou met hulle grootpratery, met hulle astrante woorde. Die Here weet alles; Hy kyk wat die mense doen. Die boë van die sterk mense is gebreek, maar die swak mense wat wou val, is nou sterk. Die mense wat baie kos gehad het, moet nou werk vir ’n bietjie kos, en dié wat honger was, is heeltemal versadig. Die vrou wat nie kon kinders kry nie, het nou sewe kinders, en met die een wat baie kinders gehad het, gaan dit sleg. Die Here maak dood en Hy maak lewendig. Hy laat mense afgaan in die graf en Hy laat mense daaruit opstaan. Die Here maak arm en Hy maak ryk. Hy verneder en Hy verhoog. Hy laat onbelangrike mense uit die stof opstaan; Hy tel die armes van die ashoop af op. Hy laat hulle by belangrike mense sit; Hy gee hulle ’n spesiale plek. Dit is seker: die pilare van die aarde is die Here s’n; Hy maak die aarde daarop vas. Hy help dié wat aan Hom getrou is, dat hulle nie val nie, maar slegte mense se lewe eindig in die donker. ’n Mens word nie met jou eie krag ’n held nie; die Here slaan dié wat Hom teëgaan stukkend. In die hemel dreun die stem van die hoë God; die Here is regter oor die hele wêreld. Hy gee mag aan die koning wat Hy kies; Hy maak sy gesalfde sterk. Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar die seuntjie, Samuel, het agtergebly en onder toesig van Eli in die tempel gehelp. Eli se seuns was twee niksnutte; hulle het geen respek vir die Here gehad nie. Priesters het ’n sekere reg gehad wanneer iemand geoffer het. Terwyl die offervleis gekook word, kom die leerlingpriester met ’n drietandvurk en steek dit in die bak of pan of kookpot of kleipot. Alles wat aan die vurk vassit, is die priester s’n. So het hulle met al die Israeliete gemaak wat in Silo kom offer het. Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.” As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!” Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here. Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra. Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan. Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword. Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor. Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie. As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak. Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou. Daar het ’n man wat God gestuur het by Eli gekom met hierdie boodskap van die Here af: “Toe jou familie in Egipte, in die land van die farao was, het Ek vir hulle mooi gesê dat Ek die Here is. Ek het jou familie gekies uit al die families van Israel om by my altaar te werk, om wierook te brand, om my priesters te wees en om vir die mense te sê wat Ek wil hê. Ek het ook vir jou familie ’n deel van die offers gegee wat die Israeliete bring. Hoekom het julle dan nie respek vir die diere- en graanoffers wat Ek gesê het die mense na my woonplek toe moet bring nie? En hoekom is jou seuns vir jou belangriker as wat Ek is? Julle voer julleself vet met die beste deel van die geskenke wat my volk Israel bring om My te eer. “Daarom sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het vir seker gesê dat jou familie geslag na geslag vir altyd in my tempel sal werk. Maar nou is Ek klaar met julle, want Ek eer die wat My eer, maar wie nie vir My respek het nie, sal self geminag word. “Daar kom ’n tyd wanneer Ek die mag wat jy het en die mag van jou familie gaan kortknip, almal in jou familie sal jonk doodgaan. Jy sal baie bekommerd wees oor die tempel. Dit sal met Israel goed gaan, maar van jou familie sal niemand ooit oud word nie. As daar iemand van jou mense oorbly wat Ek nie van my altaar af wegvat nie, sal hy vir jou net hartseer en verdriet bring. Maar die meeste van jou familie sal jonk doodgaan. En hier is die bewys daarvan: jou twee seuns Hofni en Pinehas sal al twee op een dag doodgaan. “Ek sal vir My ’n betroubare priester aanstel wat sal doen wat Ek wil hê hy moet doen. Ek sal vir sy nageslag ’n priesterskap gee wat sal aanhou: hulle sal altyd vir die koning werk wat Ek gaan kies. Elkeen wat van jou familie oorbly, sal voor my priester gaan kniel vir ’n bietjie geld en ’n broodjie en vir hom sê: ‘Deel my asseblief in by een van die priestergroepe sodat ek tog ook iets kan hê om te eet.’” Die seuntjie Samuel het onder Eli se toesig in die tempel gehelp. Die woord van die Here was skaars in dié tyd. Die Here het met niemand gepraat nie. Op ’n keer het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het so sleg geword dat hy nie meer kon sien nie. Samuel het in die heilige deel van die tempel van die Here geslaap waar die verbondsark van God gestaan het. Voor dit die môre lig word en die lamp in die tempel doodgeblaas word, het die Here Samuel geroep. “Ja, ek kom,” het hy geantwoord en gou na Eli toe gegaan. “U het my geroep. Het u my nodig?” het hy gevra. “Nee, ek het jou nie geroep nie,” het Eli geantwoord. “Gaan lê maar weer.” Hy het toe weer gaan lê. Die Here het weer geroep: “Samuel!” Samuel het opgestaan en na Eli toe gegaan en vir hom gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?” Eli het weer geantwoord: “Nee, ek het jou nie geroep nie, my kind. Gaan lê maar weer.” Samuel het toe nog nie die Here geken nie, want die Here het nog nie met hom gepraat nie. Die Here het Samuel die derde keer geroep. Hy het na Eli toe gegaan en gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?” Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het. Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou weer roep, sê jy: ‘Praat maar, Here, u dienaar luister.’” Samuel het weer op sy plek gaan lê. Die Here het gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel! Samuel!” Toe antwoord Samuel: “Praat maar, u dienaar luister.” Die Here het toe vir Samuel gesê: “Ek gaan binnekort iets in Israel doen wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. Op daardie dag sal Ek alles doen waarmee Ek Eli gedreig het. Ek het al vir hom gesê dat Ek sy familie vir altyd gaan straf vir die sonde waarvan hy geweet het, maar waaraan hy niks gedoen het nie: sy seuns het baie lelike dinge gedoen, maar hy het hulle nie vasgevat nie. Daarom het Ek vir Eli se familie gesweer: die sonde van Eli se familie sal nooit reggestel kan word met enige offer nie.” Samuel het tot die môre bly lê en die deure van die Here se tempel oopgemaak. Hy was te bang om vir Eli te vertel wat in die nag gebeur het. Eli roep toe vir Samuel: “Samuel, my kind, kom hier!” Hy antwoord toe: “Ja, het u my nodig?” Eli vra vir hom: “Wat het die Here vir jou gesê? Moet niks vir my wegsteek nie. God sal jou baie swaar straf as jy vir my enigiets wegsteek wat Hy vir jou gesê het.” Samuel het hom toe alles vertel; hy het niks geheim gehou nie. Eli het daarop geantwoord: “Hy is die Here. Hy sal doen wat Hy wil.” Samuel het grootgeword en die Here het hom gehelp. Die Here het ál Samuel se woorde waar gemaak. Die hele Israel, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, het geweet dat Samuel ’n profeet van die Here is wat die waarheid praat. Die Here het meer kere in Silo verskyn. Hy het daar met Samuel gepraat en Samuel het die Here goed leer ken. Samuel was ’n profeet vir die hele Israel. Die Israeliete het uitgetrek om teen die Filistyne te gaan veg. Hulle kamp was by Eben-Haeser en die Filistyne s’n by Afek. Die Filistyne het hulle manskappe reggekry vir die geveg teen die Israeliete. Toe die geveg ’n ruk aan die gang was, het die Israeliete begin verloor. Daar is omtrent 4 000 van die Israeliete in die geveg in die oop veld dood. Toe die volk by die kamp terugkom, het die leiers van Israel gesê: “Hoekom het die Here ons vandag só ver teen die Filistyne laat verloor? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here in Silo. As Hy by ons is, sal Hy ons teen ons vyande help.” Die volk het toe die verbondsark van die magtige Here wat op die gerubs sit, in Silo laat haal. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het saam met die ark van God gekom. Toe die ark van die Here in die kamp kom, het al die Israeliete geskreeu dat die aarde bewe. Die Filistyne het die harde geskree gehoor en gevra: “Watse vreeslike geskree is dit daar in die Hebreërs se kamp?” Toe hulle hoor dat die ark van die Here in die kamp aangekom het, het hulle bang geword en vir mekaar gesê: “Hulle God het in die kamp aangekom! Ons is in die moeilikheid! So iets het nog nooit gebeur nie! Ons is in die moeilikheid! Wie sal ons help teen hierdie magtige God? Dis dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn so laat swaarkry het met al die plae. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!” Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood. Die ark van God het in die slag gebly en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, is ook dood. ’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind. Die man sê toe vir hom: “Ek kom nou net van die oorlog af. Ek het vandag daar weggehardloop.” Daarop vra Eli vir hom: “Wat het gebeur, my kind?” “Die Israeliete het vir die Filistyne gevlug,” sê die boodskapper. “Daar is baie van ons mense dood; u twee seuns Hofni en Pinehas ook, en die Filistyne het die ark van God gevat.” Toe hy sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die dorp se ingang reg agteroor van die stoel afgeval. Hy het sy nek gebreek en is dood, want hy was oud en swaar. Eli het Israel 40 jaar lank gelei. Eli se skoondogter, Pinehas se vrou, het ’n baba verwag en die tyd van die geboorte was naby. Toe sy hoor dat die Filistyne die ark van God gevat het, en dat haar skoonpa en haar man dood is, het die geboortepyne skielik begin. Sy het haar knieë opgetrek en gekraam. Die vroue wat haar gehelp het, het gesê: “Moenie moed verloor nie; jy het ’n seuntjie!” Maar sy was besig om dood te gaan; sy het nie geantwoord of met die vroue gepraat nie. Net voor sy dood is, het sy die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Israel se eer is weg.” Sy het bedoel die ark van God wat weg was en die dood van haar skoonpa en haar man. Sy het weer gesê: “Israel se eer is weg, want die ark van God is weggevat.” Die Filistyne het die ark van God van Eben-Haeser af Asdod toe gevat. Daar het hulle die ark in die tempel van hulle god Dagon ingevat en dit langs die beeld van Dagon neergesit. Vroeg die volgende dag, toe die mense van Asdod daar kom, sien hulle Dagon het plat op sy gesig geval voor die ark van die Here. Hulle het Dagon opgetel en hom weer regop op sy plek gesit. Maar vroeg die môre daarna lê Dagon wéér plat op sy gesig voor die ark van die Here. Sy kop en hande het afgebreek en het in die deur van die tempel gelê. Net Dagon se lyf was nog heel. Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat na sy tempel in Asdod toe gaan, tot vandag toe nie op die drumpel van daardie deur nie. Die Here het die mense van Asdod en die hele omgewing laat les opsê en hulle vol swere gemaak. Toe die mense van Asdod sien wat gebeur, sê hulle: “Die ark van die God van Israel mag nie hier by ons bly nie, want die hand van hierdie God is hard teen ons en ons god Dagon.” Hulle roep toe die vyf regeerders van die Filistynse stadstate in Asdod bymekaar en vra: “Wat moet ons doen met die ark van die God van Israel?” Die regeerders sê toe: “Stuur die ark Gat toe.” Hulle vat toe die ark soontoe. Maar toe die ark daar aankom, was daar groot moeilikheid op die dorp. Die Here het hulle hard geslaan en al die dorp se mense, groot en klein, vol swere gemaak. Daarop stuur hulle die ark van God Ekron toe. Toe die ark dáár aankom, skree die mense van Ekron: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons toe gebring! Hulle wil ons en ons mense almal dood hê!” Hulle roep toe weer die vyf regeerders van die Filistynse stadstate bymekaar en sê vir hulle: “Stuur tog die ark van die God van Israel na sy plek toe terug, anders is ons en ons mense almal dood.” Die mense van die dorp het verskriklik bang geword, want die Here het die plek laat swaarkry. Die mense wat nog nie dood was nie, was vol swere. Jy kon die gekerm van die dorp se mense kilometers ver hoor. Die ark van die Here was sewe maande in die Filistyne se gebied, toe laat die Filistyne hulle priesters en waarsêers kom en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons waarmee ons hom moet terugstuur na sy plek toe.” Die waarsêers antwoord hulle: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit net nie sonder ’n geskenk terugstuur nie. Julle móét die God van Israel iets gee vir die skade; dan kan julle dalk gesond word en agterkom waarom Hy julle so swaar laat kry.” Hulle vra toe: “Waarmee moet ons vir die skade betaal?” Die waarsêers antwoord: “Met vyf goue swere en vyf goue rotte, want daar is vyf Filistynse regeerders, en dieselfde plaag het julle en julle vyf regeerders getref. Maak beeldjies van die swere en van die rotte wat julle land verniel, en erken só dat die God van Israel ’n magtige God is. Miskien sal Hy julle en julle gode en julle land dan nie meer laat swaarkry nie. Moenie hardkoppig wees soos die Egiptenaars en die farao nie. God het hulle in die woestyn laat swaarkry, toe móés hulle die Israeliete laat trek. Kry ’n nuwe wa reg en twee koeie wat in melk is, maar wat nog nooit ingespan is nie. Span die koeie voor die wa, maar keer die kalwers af stal toe. Vat die ark en sit dit op die wa. Sit dan die goue beeldjies waarmee julle die God van Israel betaal vir die skade, in ’n sak langs die kis. Los dan die wa en kyk waarheen die koeie loop. As hulle na die plek toe gaan waar die ark vandaan kom, na Bet-Semes se kant toe, dan weet ons dit is die God van Israel wat hierdie groot moeilikheid oor ons gebring het. As hulle nie daarheen loop nie, dan weet ons dat dit nie Hy was wat ons so hard geslaan het nie, maar dat dit bloot toevallig met ons gebeur het.” Hulle het toe so gemaak. Hulle span twee koeie wat in melk is, voor die wa en hou die kalwers op stal. Hulle sit die ark van die Here op die wa en ook die sak met die goue rotte en die beeldjies van die swelsels. Die koeie het reguit na Bet-Semes toe geloop. Hulle het geloop en bulk, maar al die tyd padlangs gehou sonder om links of regs af te draai. Die regeerders van die stadstate het agter die wa aangeloop tot by die grens van Bet-Semes. Die mense van Bet-Semes was in die vallei besig om koring te oes. Toe hulle opkyk en die ark op die wa sien, was hulle bly. Die koeie het met die wa gaan staan by die land van Josua van Bet-Semes. Daar was ’n klipplaat. Hulle kap toe die wa stukkend en offer die twee koeie daar vir die Here. Die Leviete het die ark en die sak met die goue beeldjies van die wa afgetel en dit op die klipplaat neergesit. Daardie dag het die mense van Bet-Semes vir die Here offerdiere geslag en verbrand. Die vyf Filistynse regeerders het dit alles gesien. Hulle is dieselfde dag terug Ekron toe. Die vyf goue beeldjies van die swelsels waarmee die Filistyne die Here wou betaal, is gegee in die plek van die vyf groot dorpe van die Filistyne: Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron. Die goue rotte is weer gegee in die plek van al die Filistynse dorpe waaroor die vyf regeerders beheer gehad het, die groot dorpe met mure om en ook die kleiner dorpies sonder mure. Die klipplaat waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog daar op die stuk grond van Josua van Bet-Semes. Die Here het die mense van Bet-Semes swaar gestraf omdat hulle in die ark geloer het. Hy het 70 van die 5 000 inwoners laat doodgaan. Die mense van Bet-Semes het gehuil omdat die Here hulle so hard geslaan het. Hulle het gesê: “Wie kan naby die Here, hierdie heilige God, lewendig bly? Na wie toe moet die ark nóú gaan?” Hulle het vir die mense van Kirjat-Jearim laat weet: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom haal hom, asseblief.” Die mense van Kirjat-Jearim het toe die ark gaan haal en hom na Abinadab, wat op ’n bult gebly het, gevat. Hulle het vir sy seun Eleasar gesê om niks anders te doen nie as om net die ark van die Here op te pas. Die ark het ’n lang tyd, seker twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Al die Israeliete het gedurig by die Here gaan kla. Samuel sê toe vir hulle: “As julle regtig ernstig is om na die Here toe terug te kom, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en godinne wat julle het. Wees getrou aan die Here en dien Hom alleen, dan sal Hy julle vrymaak uit die mag van die Filistyne.” Die Israeliete het toe ontslae geraak van die Baälgode en die Astartegodinne en net die Here gedien. Samuel sê toe: “Laat al die Israeliete by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle by die Here pleit.” Hulle het toe by Mispa bymekaargekom. Hulle het water geskep en dit by die altaar uitgegooi. Hulle het daardie dag niks geëet nie en het bely: “Ons het teen die Here gesondig!” Samuel het daar in Mispa vir die Israeliete gesê wat die wil van die Here is. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete in Mispa saamgekom het, het die regeerders van die stadstate besluit om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Die Israeliete het dit gehoor en was bang vir die Filistyne. Hulle het vir Samuel gesê: “Moet asseblief nie ophou om vir ons by die Here te pleit dat Hy ons teen die Filistyne help nie.” Samuel het ’n lam wat nog aan sy ma drink, gevat en die hele lam vir die Here op die altaar verbrand. Hy het die Here se hulp vir die Israeliete gevra, en die Here het sy gebed verhoor. Samuel was nog besig om die lam te verbrand, toe begin die Filistyne al met die geveg. Op daardie oomblik het die Here harde donderslae bokant die Filistyne laat slaan. Dit het hulle só deurmekaar gemaak dat hulle die geveg teen die Israeliete verloor het. Die manskappe van die Israeliete het die Filistyne van Mispa af tot onderkant Bet-Kar gejaag en hulle afgemaai. Samuel het tussen Mispa en Sen ’n groot klip regop gesit as ’n monumentjie. Hy het die klip Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot so ver het die Here ons gehelp.” Die Filistyne is op hulle plek gesit en het nie weer op Israel se grond gekom nie, want solank Samuel geleef het, het die Here hulle laat swaarkry. Die Israeliete het die dorpe wat die Filistyne van hulle afgevat het, weer teruggekry, van Ekron af tot by Gat. Die Filistyne was ook nie meer baas oor die gebiede langsaan nie. Daar was ook vrede tussen die Israeliete en die Amoriete. Sy hele lewe lank het Samuel vir die Israeliete gesê wat die Here wil hê. Hy het elke jaar Bet-El, Gilgal en Mispa toe gegaan en by al die altare na die Israeliete se regsake geluister en vir hulle gesê wat die Here se uitspraak is. Nadat hy by al die plekke was, het hy teruggegaan Rama toe, waar hy gebly het. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou en die Israeliete kon ook dáár hoor wat die wil van die Here is. Toe Samuel ’n ou man was, het hy sy seuns aangestel om regters te wees vir die Israeliete. Sy oudste seun was Joël en die tweede Abia. Hulle was regters in Berseba. Maar hulle het nie hulle pa se voorbeeld gevolg nie. Die twee was net daarop uit om geld te maak. Hulle het omkoopgeskenke by die mense gevat en in die hof sommer net gesê waarvan die mense gehou het. Al die familiehoofde van Israel het toe bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan. Hulle sê vir hom: “U het oud geword en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel dan nou ’n koning oor ons aan om ons regter te wees soos dit die geval is by al die ander nasies.” Samuel het niks gehou van die idee dat hulle gesê het: “Gee vir ons ’n koning om ons regter te wees,” nie. Hy het toe by die Here raad gaan vra. Die Here sê toe vir Samuel: “Jy moet maar doen wat hulle sê, want eintlik is dit nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar hulle wil My nie meer as koning oor hulle hê nie. Hulle doen maar net wat hulle nog altyd gedoen het vandat Ek hulle uit Egipte laat trek het: hulle draai die rug vir My en dien ander gode. Hulle behandel jou nou net so. Doen wat hulle sê, maar waarsku hulle ernstig en sê vir hulle wat die regte is van die koning wat oor hulle gaan heers.” Samuel het vir die volk wat ’n koning wou hê, alles gesê wat die Here vir hom gesê het, en toe bygevoeg: “Die koning wat oor julle gaan heers, sal die reg hê om julle seuns diensplig te laat doen in sy strydwamag en in sy troepe wat op perde ry. Hulle sal as boodskappers voor sy strydwa moet hardloop. Hy sal hulle as offisiere oor 50 en oor 1 000 manskappe gebruik. Hulle sal ook sy lande moet ploeg, vir hom moet oes, wapens moet maak en sy strydwaens moet regmaak. Julle dogters sal hy gebruik om vir hom salf te meng, te kook en te bak. Hy sal julle beste landerye, wingerde en olyfboorde vat en dit vir sy amptenare gee. Hy sal tien persent van julle landerye en wingerde se oes vat en dit vir sy paleiswerkers en ander amptenare gee. Hy sal julle slawe en slavinne, julle beste jong mans en julle donkies vat om vir hom te werk. Hy sal ook tien persent van die aanteel van julle kleinvee vat. Julle sal self eintlik maar sy slawe wees. As julle dan in die toekoms by die Here smeek om tog net ontslae te raak van die koning wat julle gekies het, sal Hy nie julle gebede verhoor nie.” Maar die volk wou nie na Samuel luister nie. Hulle het gesê: “Nee, ons móét ’n koning hê! Dan sal ons ook soos die ander nasies wees: ons koning sal vir ons ’n regter wees; hy sal ons lei en vir ons oorlog maak.” Toe Samuel alles hoor wat die volk sê, het hy dit vir die Here gaan vertel. Die Here sê toe vir hom: “Luister na hulle en stel ’n koning oor hulle aan.” Samuel het vir die familiehoofde gaan sê: “Gaan elkeen eers terug na sy dorp toe.” In die Benjaminstreek was daar ’n man met die naam Kis. Sy pa, Abiël, en dié se voorouers, Seror, Bekorat en Afiag, het aan die Benjaminstam behoort. Kis was ’n ryk man. Hy het ’n seun gehad met die naam Saul. Saul was ’n puik jong man. Daar was niemand soos hy onder al die Israeliete nie. Hy was ’n hele kop langer as die ander Israeliete. Toe Kis se donkiemerries op ’n keer wegraak, sê hy vir Saul: “Vat een van die werkers en gaan soek die donkies.” Saul en die werker het oral gesoek: in die bergland van Efraim en in die omgewing van Salisa, Saälim en Jemina. Hulle kon die donkies nêrens kry nie. Toe hulle tot in die omgewing van Suf gesoek het, sê Saul vir die werker wat by hom is: “Kom ons gaan maar terug huis toe, anders is my pa naderhand meer bekommerd oor ons as oor die donkies.” Maar die werker sê vir hom: “Weet u, ek hoor in hierdie dorp is daar ’n Godsman. Die mense het respek vir hom, want al sy woorde word waar. Kom ons gaan soontoe, miskien kan hy vir ons sê waar om te soek.” Saul sê vir die werker: “Ja, ons kan gaan, maar waarmee betaal ons die man? Die brood in ons sakke is gedaan. Ons het nie ’n geskenk by ons om vir die Godsman te gee nie. Wat anders het ons?” “Ek het hier nog ’n stukkie silwer,” antwoord die werker. “Ek sal dít vir die Godsman gee, dan kan hy vir ons sê waar om te soek.” (Vroeër het ’n mens in Israel, wanneer jy by God raad wou vra, gesê: “Kom ons gaan na die siener toe,” want vroeër is profete sieners genoem.) “Dis reg so,” sê Saul, “kom ons gaan.” So gaan hulle toe na die dorp toe waar die Godsman was. Terwyl hulle teen die bult opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat gaan water skep. Hulle vra hulle toe: “Is die siener hier?” “Ja,” antwoord die meisies. “Hy is net voor julle. Maar julle moet gou maak; hy het net vandag na ons dorp toe gekom, want die mense offer vandag by die offerplek. Nes julle die dorp ingaan, sal julle hom kry voor hy na die offerplek toe opgaan om saam met die mense die offervleis te eet. Die mense eet nie voor hy kom nie, want hy moet die offer seën. Eers dan eet die gaste. As julle nou dadelik gaan, sal julle hom kry.” Hulle gaan toe na die dorp toe, en net toe hulle op die dorpsplein kom, loop hulle vir Samuel, wat op pad is na die offerplek toe, raak. Die vorige dag al het die Here dit vir Samuel in die oor gefluister: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal Ek ’n man na jou stuur uit die stamgebied van Benjamin. Salf hom as ’n leier vir my volk Israel. Hy sal my volk vrymaak van die mag van die Filistyne. Hulle het My gesmeek om hulle te help en Ek weet goed in watter moeilikheid hulle is.” Toe Samuel Saul sien, sê die Here vir hom: “Die man van wie Ek gesê het, ‘hy sal my volk regeer,’ dis hý daardie.” Daar op die dorpsplein vra Saul toe vir Samuel: “Kan u my dalk sê waar die siener tuis is?” “Ek is die siener,” antwoord Samuel. “Kom saam met my op na die offerplek en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend afsien, dan sal ek jou ’n geheim vertel. Oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het, hoef jy jou nie te bekommer nie, hulle is gekry. Maar wie is die belangrikste in Israel? Is dit nie jy en jou hele familie nie?” “Waarom sê u so iets vir my?” vra Saul. “Ek is maar net iemand van die Benjaminstam, die kleinste van die stamme van Israel, en my familie is die onbelangrikste van al die families van Benjamin.” Samuel vat toe vir Saul en sy werker saam na die saal toe en gee vir hulle die belangrikste plek tussen die sowat 30 gaste. Daarop sê Samuel vir die kok: “Bring vir my dié deel van die offervleis wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te hou.” Die kok bring toe die skenkel en sit dit voor Saul neer. “Dit het oorgebly,” sê Samuel. “Eet gerus, want dit is toe ek die mense genooi het, al spesiaal vir jou gebêre.” Saul het daardie dag saam met Samuel geëet. Toe hulle van die offerplek af teruggegaan het dorp toe, het Samuel met Saul op die dakstoep van die huis gepraat. Die volgende môre was Saul en sy werker teen dagbreek al op. Samuel roep toe na Saul op die dakstoep: “Maak klaar! Ek wil jou afsien.” Saul het klaargemaak en hy en Samuel het saam buitetoe gegaan. Hulle het teen die bult afgegaan tot buite die dorp. Daar sê Samuel vir Saul: “Sê vir die werker hy moet solank vooruitgaan. Bly jy ’n bietjie staan, want ek het ’n boodskap van God vir jou.” Die werker het toe vooruitgegaan. Toe vat Samuel ’n kruik met olyfolie en gooi dit op Saul se kop uit. Hy omhels hom en sê: “Die Here salf jou as die leier van sy eie volk.” Verder sê hy: “Wanneer jy nou van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by Selsag, naby die graf van Ragel in die Benjaminstreek. Hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies waarna jy soek, is gekry. Jou pa dink nie meer oor hulle nie; hy is bekommerd oor julle twee en wonder wat hy moet doen om sy seun terug te kry.’ “As jy van daar af verder gaan en jy kom by die eikeboom van Tabor, sal jy drie mans teëkom. Hulle is op pad na die plek van God by Bet-El. Een dra drie boklammers, die ander een drie ringbrode en die laaste een ’n kruik wyn. Hulle sal jou groet en vir jou twee brode gee wat jy by hulle sal vat. “Daarna sal jy by Gibea-Elohim kom, waar die Filistyne se wagte is. As jy naby die dorp kom, sal jy ’n groep profete kry wat bo van die offerplek af kom met harpe, tamboeryne, fluite en liere. Hulle sal in profetiese ekstase wees. Die Gees van die Here sal in jou werk sodat jy ’n ander mens sal word en saam met hulle in profetiese ekstase sal wees. “Wanneer hierdie tekens gebeur wat ek vir jou gee, doen wat jy moet doen, want God help jou. Gaan dan af Gilgal toe. Ek sal later by jou aansluit om brandoffers en offers vir die gesamentlike ete te bring. Jy moet sewe dae wag totdat ek daar aankom en vir jou sê wat jy verder moet doen.” Die oomblik toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God klaar sy hart verander. Al die dinge wat Samuel gesê het sal gebeur, het werklik nog dieselfde dag gebeur. Hy kom by Gibea aan, en jou waarlik, daar is die groep profete! Die Gees van God werk toe só in hom dat hy saam met hulle gaan en net soos hulle in profetiese ekstase raak. Almal wat hom jare al geken het, kon hulle oë skaars glo toe hy so saam met die profete is en net soos hulle maak. “Wat het met Kis se seun gebeur?” vra hulle vir mekaar. “Hoort Saul dan by die profete?” Iemand daar naby merk toe op: “En wie is nogal hulle leier?” Dit is waar die spreekwoord vandaan kom wat sê: “Hoort Saul dan by die profete?” Toe die profetiese ekstase verby was, het Saul na die offerplek toe gegaan. Saul se oom het vir hom en die werker gevra: “Waar was julle al die tyd?” “Die donkies gesoek,” antwoord hy, “en toe ons sien ons kry hulle nie, het ons na Samuel toe gegaan.” “Sê vir my, wat sê Samuel toe vir julle?” vra sy oom. “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” antwoord Saul. Maar oor die koningskap waarvan Samuel gepraat het, het Saul nie ’n woord gesê nie. Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’” Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.” Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot. Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie! Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.” Hulle het hom gou daar gaan haal, en toe hy tussen die ander mense staan, was hy ’n kop langer as hulle. Samuel sê toe vir die volk: “Sien julle wie het die Here gekies? Daar is nie nog een soos hy nie.” Daarop skree die volk: “Lank lewe die koning!” Samuel het vir die volk die reëls van die koningskap verduidelik en dit op ’n rol geskryf wat hy in die tempel neergesit het. Daarna het hy almal huis toe gestuur. Saul is ook na sy huis in Gibea toe. ’n Klompie dapper mans is saam met hom, want die Here het hulle elkeen se hart geroer. Maar ’n klomp niksnutte het gesê: “Moet dié vent ons uit die moeilikheid kry?” Hulle het nie respek vir hom gehad nie en het nie eers ’n geskenk vir hom gevat nie. Saul het hom maar doof gehou. Nagas het uit Ammon opgetrek en die dorp Jabes in Gilead beleër. Die mense van Jabes sê toe vir Nagas: “Ons wil graag ’n ooreenkoms met u aangaan. Ons is bereid om u onderdane te wees.” Nagas, die Ammoniet, se antwoord was: “Ja, maar op voorwaarde dat ek elkeen van julle se regteroog uitsteek en die hele Israel so verneder.” “Gee ons sewe dae kans,” het die leiers van Jabes hom laat weet. “Ons sal boodskappers deur die hele Israel stuur. As niemand kans sien om ons te help nie, sal ons oorgee.” Toe die boodskappers met dié slegte nuus in Gibea aankom, waar Saul woon, en dit vir die mense vertel, het hulle hardop begin huil. Saul was juis agter ’n span osse op pad huis toe van die land af. “Wat is dit met die mense dat hulle so huil?” vra hy. Hulle vertel hom wat die manne van Jabes gesê het. Toe hy dít hoor, werk die Gees van God in hom en hy word baie kwaad. Hy vat twee osse, kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele Israel met die boodskap: “Die een wat nie saam met Saul en Samuel gaan veg nie, se osse sal só stukkend gekap word.” Die mense was so bang, hulle het voor die voet kom sê hulle sal help. Saul het die manskappe by Besek getel: daar was 300 afdelings Israeliete en 30 afdelings Judeërs. Vir die boodskappers van Jabes is daar gesê: “Sê vir die mense van Jabes in Gilead: ‘Môre as die son op sy warmste is, kom daar hulp.’” Toe dié boodskap by hulle uitkom, was die mense van Jabes baie bly. Maar vir Nagas het hulle laat weet: “Môre gee ons oor, dan kan julle met ons maak wat julle wil.” Baie vroeg die volgende môre, met die laaste wagbeurt van die nag, het Saul uit drie rigtings die kamp aangeval. Hulle het die Ammoniete afgemaai tot die middag toe. Dié wat dit oorleef het, was só uitmekaargejaag dat nie twee van hulle bymekaar was nie. Die volk sê toe vir Samuel: “Wie het gesê: Moet Saul van alle mense ons koning wees? Bring daardie mans hier dat ons hulle kan doodmaak.” Maar Saul sê: “Niemand word vandag doodgemaak nie, want op hierdie dag het die Here Israel vrygemaak.” Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan Gilgal toe, dan erken ons ons nuwe koning.” Almal het Gilgal toe gegaan en daar voor die altaar in Gilgal gesê dat Saul koning is. Hulle het offers geslag en by die altaar geëet. Saul en al die Israeliete het daar ’n groot fees gehou. Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Ek het alles wat julle gevra het, gedoen en ’n koning oor julle aangestel. Nou kan die koning julle lei. Ek is ’n ou man en ek is grys; ja, my kinders is so oud soos julle. Ek self het julle gelei van my jong dae af tot vandag toe. Hier staan ek voor julle. Julle kan my nou by die Here en by sy gesalfde koning aankla as ek iets verkeerds gedoen het. Het ek ooit iemand se goed gevat of iemand mishandel? Het ek ooit omkoopgeld gevat en onreg toegelaat? As ek dit ooit gedoen het, sal ek daarvoor betaal.” “Nee,” antwoord hulle, “u het niemand gedwing om vir u iets te gee of iemand mishandel nie. U het by niemand iets gevat nie.” Samuel sê vir hulle: “Die Here is vandag getuie en sy gesalfde koning is ook getuie dat julle gesê het ek het niks onwettigs gedoen nie.” Hulle stem toe saam: “Die Here is getuie.” Daarna sê Samuel vir die volk: “Julle weet dit is die Here wat Moses en Aäron gegee het en julle voorouers uit Egipte laat trek het, nè? Wel, kom staan dan hier in die beskuldigdebank! Ek gaan nou téén julle vir die Here getuig, deur al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorouers gedoen het, op te noem. Nadat Jakob Egipte toe getrek het, het julle voorouers na die Here geroep en gevra Hy moet hulle help. Hy het Moses en Aäron gestuur. Hulle het julle voorouers uit Egipte gelei en vir hulle hier ’n blyplek gegee. “Maar hulle het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die generaal van die dorp Hasor. Die Here het hulle ook in die mag van die Filistyne en die koning van Moab oorgegee. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gemaak het, het hulle na die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die rug vir U, Here, gedraai en die Baälgode en Astarte-godinne gedien. Red ons asseblief nou uit die mag van ons vyande. Ons sal U dien.’ “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon. Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is! Wel, nou hét julle die koning wat julle wou gehad het! Julle het vir ’n koning gevra, en die Here hét vir julle ’n koning gegee! “As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees. Maar as julle nie na Hom luister nie en teen sy bevele in opstand is, sal die Here julle laat swaarkry soos Hy met julle voorouers gemaak het. “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen: dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.” Toe Samuel na die Here roep, het die Here daardie dag ’n donderstorm laat losbreek. Al die mense het groot respek gehad vir die Here en vir Samuel. Almal sê toe vir Samuel: “Pleit asseblief vir ons by die Here u God dat ons nie sterf nie; want by alles wat ons verkeerd gedoen het, het ons nog die verskriklike ding gedoen om ’n koning te vra.” Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel. Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks. “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees. Wat my betref: daar bestaan nie ’n moontlikheid dat ek sal ophou om vir julle by die Here te pleit nie. As ek dit sou doen, sondig ek teen Hom. Ek sal ook nie ophou om vir julle die goeie, reguit pad te wys nie. Onthou, julle moet respek hê vir die Here. Julle het self gesien watter groot dinge Hy vir julle gedoen het. Daarom moet julle Hom getrou en met oorgawe dien. Maar as julle aanhou verkeerde dinge doen, is dit klaarpraat met julle én julle koning.” Saul was ’n jong man toe hy koning geword het, en hy was altesaam 42 jaar lank koning oor Israel. Aan die begin het Saul vir hom 3 000 van die Israeliete uitgesoek as sy soldate. Hy het 2 000 van hierdie troepe by hom in Mikmas en in die bergwêreld om Bet-El gehou, en 1 000 van hulle het hy by Jonatan in Gibea van Benjamin laat bly. Die res van die volk het hy huis toe gestuur. Jonatan het die wagte van die Filistyne in Gibea aangeval. Die Filistyne het ook gehoor dat Saul al die Hebreeuse huursoldate in die land opgeroep het. Die boodskap wat by al die Israeliete uitgekom het, was: “Saul het die wagte van die Filistyne aangeval en die Filistyne is nou baie kwaad vir die Israeliete.” Die gewone burgers is toe ook opgeroep om by Saul in Gilgal aan te sluit. Die Filistyne het hulle gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, saamgetrek met 30 afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en soveel gewone burgers as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Toe die gewone burgers van Israel sien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle in ’n hoek is, het hulle oral gaan wegkruip: in grotte, rotsskeure, klowe, gate en droë putte. Die Hebreeuse huursoldate het padgegee na die streke van Gad en Gilead oorkant die Jordaan. Saul het in Gilgal agtergebly. Die mense wat nog by hom was, was doodbang. Saul het sewe dae gewag soos Samuel met hom afgespreek het. Maar toe Samuel nie opdaag nie, het die mense van Saul af begin wegloop. Daarom het hy gesê: “Bring vir my die brandoffer en die offer vir die heilige ete.” Hy het die brandofferdier geoffer, en net toe hy dit klaar gedoen het, kom Samuel daar aan. Saul het uitgegaan om Samuel te groet. “Wat het jy gedoen?” vra Samuel. “Ek het gesien die mense begin wegloop toe u nie op die afgespreekte tyd hier is nie,” antwoord Saul, “en omdat die Filistyne by Mikmas saamgetrek is, het ek gedink: die Filistyne gaan hier in Gilgal op my toesak voordat ek die Here gevra het om my te help. Ek het my toe maar sterk gehou en die brandofferdier geoffer.” Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee. Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.” Samuel het toe opgestaan en weggeloop. Saul het van Gilgal na Gibea in Benjamin opgegaan. Daar het hy die manskappe getel wat nog by hom was: daar was omtrent 600 van hulle oor. Saul en sy seun Jonatan en die manskappe het in Gibea in Benjamin gebly. Die Filistyne se kamp was nog in Mikmas. Daar het drie afdelings uit die kamp van die Filistyne gegaan om die gewone Israeliete se goed te roof. Een groep was besig om dit te doen na Ofra se kant toe, in die omgewing van Sual; die ander groep was besig om dit na Bet-Horon se kant toe te doen, en die derde groep het na die kop toe gegaan wat na die woestyn se kant toe uitkyk op die Seboïmvallei. In die hele gebied van Israel was daar niemand wat met yster kon werk nie, want die Filistyne het gesê: “Ons laat dit nie toe nie, anders maak die Hebreërs swaarde en spiese.” Die Israeliete moes maar elke keer na die Filistyne toe gaan om hulle ploegskare, pikke, byle of sekels te laat regmaak. Die prys was twee stukkies silwer vir die regmaak van ’n ploegskaar en ’n pik, en een stukkie silwer vir ’n vurk en ’n byl en die ysterpunt van ’n osdrywerstok. Toe die oorlog uitbreek, het nie een van die burgers wat by Saul en Jonatan aangesluit het, ’n swaard of ’n spies gehad nie. Net Saul en sy seun Jonatan het elkeen ’n swaard en ’n spies gehad. Die Filistyne se wagte was in die bergpas van Mikmas. Op ’n dag sê Jonatan, Saul se seun, vir sy wapendraer: “Kom ons gaan daar oorkant na die Filistyne se wagte toe.” Maar hy het nie vir sy pa gesê hy gaan dit doen nie. Op daardie stadium was daar so 600 man by Saul net buite Gibea. Saul self het onder die heilige granaatboom in Migron gesit saam met die priester Agija, wat vir die Here moes vra wat hulle moet doen. Niemand het geweet dat Jonatan weg was nie. (Agija was een van die priesters van Silo. Sy pa was Agitub, Ikabod se broer. Sy oupa was Pinehas, Eli se seun.) Aan elke kant van die bergpas waar Jonatan moes oorgaan om by die Filistyne se wagte uit te kom, was daar ’n rotskoppie. Die een rotskoppie se naam was Boses, en die ander een s’n Senne. Die spits rotskoppie is aan die noordekant duskant Mikmas, die ander een aan die suidekant duskant Gibea. Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.” “Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.” “Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.” Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!” “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud. Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is. Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.” Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie. Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.) Maar terwyl Saul nog met hom praat, word die geraas in die Filistyne se kamp al groter. Saul sê vir die priester: “Los maar die ark!” Saul en al die manskappe by hom trek toe saam vir die geveg. Maar tot hulle verbasing sien hulle dat die Filistyne in die deurmekaarspul teen mekaar veg! Hebreeuse huursoldate wat vroeër altyd vir die Filistyne geveg het en wat saam met hulle in die kamp was, het hulle by die Israeliete onder Saul en Jonatan aangesluit. Al die burgers van Israel wat in die Efraimsberge gaan wegkruip het, het gehoor dat die Filistyne aan die vlug is. Ook húlle het die Filistyne gejaag. Die Here het Israel daardie dag uitgehelp. Die geveg het aangehou tot by Bet-Awen. Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie. Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond. Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het. Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink. Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.” “My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het. Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.” Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was, het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is. Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.” “Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.” Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.” Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag. So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het. Saul sê toe: “Ons gaan vannag in die vlakte agter die Filistyne aan. Ons vat hulle goed, jaag hulle tot die son uitkom en maak dan die laaste een dood.” “Maak soos u goeddink,” antwoord die manskappe. Maar die priester sê: “Kom ons hoor net eers wat God daarvan sê.” Saul vra toe vir God wat hy moet doen: “Moet ek agter die Filistyne aangaan in die vlakte? Sal U hulle aan Israel oorgee?” Maar God het hom glad nie geantwoord nie. “Bring al die leiers van die volk hier bymekaar,” sê Saul. “Ek wil weet watter verkeerde ding vandag gedoen is, want sowaar as die Here, die Helper van Israel, leef, die een wat dit gedoen het, moet doodgemaak word, al is dit ook my seun Jonatan.” Maar niemand wou iets vir Saul sê nie. Hy sê toe vir al die Israeliete: “Staan julle daar, ek en my seun Jonatan sal hier staan.” “Dis goed so,” antwoord hulle vir Saul. Toe sê Saul vir die Here: “God van Israel, gee tog vir ons ’n duidelike antwoord.” Jonatan en Saul is toe geloot; die manskappe was vry. “Trek lootjies tussen my en my seun Jonatan,” sê Saul. Jonatan is geloot. Saul sê vir hom: “Vertel my wat jy gedoen het.” Jonatan vertel hom toe en sê: “Ek het maar net ’n bietjie heuning geproe met die punt van ’n stok. Moet ek nou daaroor doodgemaak word?” Saul antwoord hom: “Jy móét doodgemaak word, Jonatan. As ek nie doen wat ek vir die Here gesweer het ek sal doen nie, sal Hy my baie swaar straf.” Maar toe sê die manskappe vir Saul: “Moet Jonatan wat die Israeliete so ver laat wen het, doodgemaak word? Dit sal die dag wees! So waar as die Here leef, niemand raak aan Jonatan nie, want wat hy vandag gedoen het, het hy net reggekry omdat God hom gehelp het!” So het die manne Jonatan van die dood gered. Saul het toe nie agter die Filistyne aangegaan nie, en die Filistyne het teruggegaan na hulle eie plek. Saul het die sake van die koningskap eers goed gereël en daarna het hy oorlog gemaak teen al die vyande wat rondom die Israeliete gebly het: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die koning van Soba en die Filistyne. Oral waar hy geveg het, het hy gewen. Hy was nie ’n bang man nie. Hy het die Israeliete vrygemaak van die Amalekiete wat hulle gedurig aangeval en hulle goed gevat het. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Hy het ook twee dogters gehad; die oudste se naam was Merab en die jongste Mikal. Saul was getroud met Aginaäm. Sy was die dogter van Agimaäs. Die naam van Saul se generaal was Abner. Abner was sy neef. Hy was Ner se seun. Kis, Saul se pa, en Ner was die seuns van Abiël. Solank Saul geleef het, was daar groot gevegte met die Filistyne. Daarom het Saul elke man wat kon veg en wat nie bang was nie, as ’n soldaat gebruik. Samuel het vir Saul gaan sê: “Ek is die man wat die Here gestuur het om jou koning te maak oor sy mense, die Israeliete. Luister nou mooi wat het die Here gesê. Die magtige Here het gesê Hy onthou baie goed wat die Amalekiete gedoen het toe die Israeliete uit Egipte getrek het. Hulle het die Israeliete voorgekeer. Saul, jy moet nou met die Amalekiete gaan oorlog maak. Roei hulle almal uit. Moenie jammer wees vir hulle nie. Maak hulle en al hulle diere dood: die mans en vroue, die kinders en babatjies, die beeste en die skape, die kamele en die donkies.” Saul het vir die mense laat weet hy wil teen die Amalekiete gaan veg. Hulle het by Telaim bymekaargekom, en toe hy die manne tel, was daar 200 afdelings uit Israel en tien afdelings uit Juda. Toe Saul by die dorp van die Amalekiete kom, het hy hulle met sy manne in die spruit voorgelê. Maar hy het eers vir die Keniete laat weet: “Maak dat julle wegkom van die Amalekiete af, anders maak ek julle dalk saam met hulle dood. Ek wil dit nie doen nie, want julle was goed vir die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe van die Amalekiete af padgegee. Saul het die Amalekiete aangeval en hulle van Gawila af gejaag tot by Sur, naby Egipte. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig laat vang, maar al die ander mense laat doodmaak. Saul en sy mense het nie vir Agag doodgemaak nie. Hulle het ook nie die beste skape, bokke en beeste doodgemaak nie; ook nie die tweede beste diere en die jong ramme nie. Hulle wou nie die mooi diere doodmaak nie, maar die diere wat niks werd was nie, die goed wat niemand wou hê nie, dié het hulle doodgemaak. Die Here sê toe vir Samuel: “Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.” Samuel was baie ongelukkig daaroor en hy het dwarsdeur die nag ernstig gebid. Hy het vroeg die môre opgestaan om Saul te gaan sien. Die mense sê toe vir hom: “Saul het Karmel toe gegaan om daar vir homself ’n monument op te sit. Daarvandaan is hy hier verby af Gilgal toe.” Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.” “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel. “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.” “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul. “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel. Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’ Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.” “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak. Die manne het die beste skape en beeste wat ons vir die Here moes doodmaak, gevat om hier in Gilgal vir die Here jou God te kom offer.” Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag, en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot. “Ek het gesondig,” sê Saul vir Samuel. “Ek was ongehoorsaam aan die Here en ek het nie gedoen wat jy gesê het ek moet doen nie. Maar ek was bang vir die mense en het na hulle geluister. Vergewe asseblief wat ek verkeerd gedoen het en kom kniel saam met my voor die Here.” “Nee, ek gaan nie saam met jou nie,” sê Samuel vir hom. “Omdat jy die woorde van die Here eenkant toe gestoot het, het die Here jou ook eenkant toe gestoot. Jy gaan nie meer die koning van Israel wees nie.” Toe Samuel omdraai om weg te loop, gryp Saul hom aan sy mantel. Toe skeur die mantel. Samuel sê: “Die Here het nou net jou koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy. Die God van Israel, wat altyd daar is, sal nie lieg nie en Hy gaan ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens nie.” “Ek het gesondig,” sê Saul toe weer. “Moet my asseblief nie voor die Israeliete en hulle leiers verneder nie: kom kniel saam met my voor die Here jou God.” Samuel het saam met Saul gegaan en Saul het voor die Here gaan kniel. Daarna sê Samuel: “Bring vir Agag, die koning van die Amalekiete, hier.” Agag het na hom toe gegaan. Hy was ewe vrolik en het gedink: “Ek hoef nie meer bang te wees hulle sal my doodmaak nie.” Maar Samuel sê vir hom: “Jou swaard het ma’s en hulle kinders doodgemaak; net so gaan jou ma ook nou sonder ’n kind wees.” Toe het Samuel daar by die altaar in Gilgal Agag se kop afgekap. Samuel het Rama toe gegaan en Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea, die dorp waar hy gebore is. Samuel het nooit weer vir Saul gesien solank hy geleef het nie. Samuel het oor Saul gehuil en die Here was jammer dat Hy Saul koning laat maak het oor Israel. Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul huil noudat Ek nie meer wil hê hy moet die koning van Israel wees nie? Maak ’n beeshoring vol olyfolie en gaan na Isai toe wat in Betlehem bly. Ek stuur jou na hom toe, want Ek het gesien een van sy seuns sal ’n goeie koning wees.” Samuel sê toe: “Maar ek kan nie sommer net gaan en dit doen nie! As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak!” “Nou maar vat dan ’n verskalf,” sê die Here, “en sê jy wil die dier vir die Here gaan offer. Nooi vir Isai na die ete by die offer, dan sal Ek vir jou sê wat jy moet doen. Salf dan die een wat Ek jou sal wys.” Samuel het gemaak soos die Here vir hom gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, het die mense geskrik en die leiers van die dorp het na hom toe gekom en gevra: “Kom u omdat hier ’n probleem is?” “Nee, daar’s nie ’n probleem nie,” sê hy. “Ek het net vir die Here kom offer. Was julle en trek skoon klere aan, dan kan julle saam met my van die offervleis eet.” Hy het ook vir Isai en sy seuns gesê om dit te doen en hulle na die ete by die offer genooi. Toe Isai en sy seuns inkom, sien Samuel vir Eliab raak en dink: “Dís die man wat die Here wil laat salf.” Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie. Ek wil hom nie hê nie. Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart.” Isai roep toe vir Abinadab en stel hom aan Samuel voor. Samuel dink toe: “Die Here het seker ook nie hierdie een gekies nie.” Daarna stel Isai vir Samma aan hom voor, en Samuel dink: “Die Here het ook nie hierdie een gekies nie.” So het Isai sewe van sy seuns aan Samuel voorgestel. Maar Samuel sê vir hom: “Die Here het nie een van hulle gekies nie. Is dit al jou kinders?” Isai antwoord hom: “Die jongste seun is nie hier nie, want hy pas die skape op.” “Laat hom ook kom,” sê Samuel vir Isai, “want ons gaan nie eet voor hy ook hier is nie.” Isai het hom laat haal. Hy was ’n mooi kind met ’n seunsgesig en mooi oë. Toe sê die Here: “Dis hy! Staan op en salf hom.” Samuel het die horing met olyfolie gevat en dit daar voor sy broers op Dawid se kop uitgegooi. Van daardie dag af het die Here se Gees in Dawid gewerk. Samuel het teruggegaan Rama toe. Die Gees van die Here was nie meer by Saul nie. Saul het partykeer verskriklik bang geword, want die Here het toegelaat dat ’n slegte gees hom beetpak. Saul se mense wat in die paleis werk, het vir hom gesê: “Ons weet wat die probleem is: u kry die aanvalle omdat ’n bose gees u beetpak. U Majesteit moet maar net sê, dan soek ons dadelik iemand wat op ’n lier kan speel. As die bose gees u beetpak en die man speel vir u, sal u gou-gou beter voel.” “Goed,” sê Saul, “kyk maar of julle iemand kry wat goed kan speel. Bring hom dan vir my.” Een van die paleiswerkers sê toe: “Ek weet van iemand wat goed kan speel: een van die seuns van Isai wat in Betlehem bly. Hy is nie bang nie en hy kan goed veg. ’n Mens kan luister na wat hy sê, en hy is ’n mooi jong man. Die Here is by hom.” Saul het toe vir Isai laat weet: “Stuur jou seun Dawid, die een wat skape oppas, na my toe.” Isai het brood en ’n leersak met wyn op ’n donkie gelaai en ook ’n jong bokkie saam met Dawid vir Saul gestuur. Dawid het by Saul gekom en vir hom begin werk. Saul het sommer baie van Dawid gehou en hy het Saul se wapendraer geword. Daarom het Saul vir Isai ’n boodskap gestuur: “Ek wil hê Dawid moet vir my bly werk, want ek hou van hom.” Elke keer as die bose gees Saul beetpak, vat Dawid die lier en speel daarop. Dan gee die bose gees van Saul af pad, en word hy kalm en voel beter. Die Filistyne het hulle soldate bymekaargemaak vir oorlog en by Soko wat in Juda is, saamgekom. Hulle kamp was by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die Israeliete het ook bymekaargekom. Hulle kamp was by Eikelaagte. Hulle het gereedgemaak om teen die Filistyne te veg. Die Filistyne en die Israeliete het kamp opgeslaan op twee bulte weerskante van ’n spruit. Daar kom toe ’n voorvegter uit die kamp van die Filistyne. Sy naam was Goliat. Hy het uit die dorp Gat gekom en hy was amper drie meter lank. Die man het ’n brons helm op sy kop gehad en ’n veghemp met brons skubbe aangehad. Die veghemp het 57 kilogram geweeg. Hy het brons beenskutte gedra en daar het ’n brons kromswaard tussen sy skouers gehang. Die handvatsel van sy spies het gelyk soos die balk waaraan mense wat weef, hulle wol hang, en die spies se ysterpunt het omtrent ses kilogram geweeg. ’n Man wat ’n groot skild dra, het voor hom geloop. Goliat het by die spruit gaan staan en vir die manne van Israel geskree: “Hoekom maak julle reg om teen die Filistyne te veg? Ék is ’n Filistyn en julle is ’n klomp slawe van Saul! Kies iemand en laat hom hier onder na my toe kom! As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!” Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang. [12-16] Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree. Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas. *** *** *** *** Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg, want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val. Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan. Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor. Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan. Daar is vir die Israeliete gesê: “Sien julle hoe kom hierdie man elke keer vorentoe om met die Israeliete te spot? Die koning sal die man wat hom doodmaak, skatryk maak en sy dogter vir hom gee. Sy familie sal ook nie belasting hoef te betaal nie.” Dawid sê toe vir die manne wat daar om hom staan: “Wat sal gebeur met die man wat daardie Filistyn doodmaak en hierdie skande vir Israel stopsit? Wie dink daardie heiden van ’n Filistyn miskien is hy dat hy so met die manskappe van die lewende God spot?” Die manne het vir Dawid dieselfde antwoord gegee: “Dit is wat gedoen sal word met die man wat die Filistyn doodmaak.” Dawid se oudste broer, Eliab, het gehoor dat Dawid met die manne praat. Hy het hom bloedig vererg vir Dawid: “Wat het jy hier kom soek? En by wie het jy daardie klompie skape in die oop veld gelos? Ek weet hoe voor op die wa jy is en watter plannetjies jy altyd maak: jy het maar net hierheen gekom om die geveg te sien.” “Wat het ek nou verkeerd gedoen?” vra Dawid. “Hierdie is tog ’n ernstige saak.” Hy draai toe weg van Eliab af na van die ander manne en vra vir hulle ook dieselfde vraag. Hulle gee hom toe dieselfde antwoord. Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal. Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.” “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang, gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.” Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het, en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.” Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop. Die manne van Israel en Juda het opgespring en hulle strydkreet geskree. Hulle het die Filistyne gejaag tot by Gat en tot by die ingang van Ekron. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saärajim af tot by Gat en Ekron. Toe die Israeliete terugkom van dié woeste gejaag af, het hulle al die goed in die Filistyne se kamp gevat. ( Dawid het later die Filistyn se kop Jerusalem toe gevat, en die wapens het hy in sy huis gesit.) Saul het gesien hoe Dawid teen die Filistyn gaan veg, waarop hy vir Abner, sy groot generaal, gevra het: “Wie se kind is dit, Abner?” “Ek weet sowaar nie, U Majesteit,” het hy geantwoord. “Vind vir my uit wie se kind is die jong man,” het die koning gesê. Toe Dawid terugkom by die kamp nadat hy die Filistyn doodgemaak het, het Abner hom na Saul toe gebring. Hy het die kop van die Filistyn nog by hom gehad. Saul vra hom toe: “Wie se kind is jy, seun?” Dawid het geantwoord: “Ek is die kind van Isai, u onderdaan wat in Betlehem bly.” [1-2] Van daardie dag af het Saul vir Dawid by hom gehou. Hy het hom nie weer na sy pa se huis toe laat gaan nie. Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan sommer baie van hom begin hou. Hy het net soveel vir Dawid omgegee as vir homself. *** Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee. Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee. Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor. Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!” Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het. Saul het vir Dawid gesê: “Ek wil hê jy moet met my oudste dogter, Merab, trou. Die voorwaarde is net dat jy vir my ’n dapper soldaat moet wees en in die oorloë van die Here moet veg.” Saul het gedink: “Ék hoef dan nie vir Dawid dood te maak nie; die Filistyne sal dit doen.” Maar Dawid se antwoord was: “Ek en my familie is regtig te onbelangrik dat ek die koning se skoonseun kan word.” Toe die tyd kom dat Merab, die dogter van Saul, met Dawid moet trou, het Saul haar laat trou met Adriël wat in Megola gebly het. Intussen het Mikal, Saul se ander dogter, op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, het dit hom goed te pas gekom, want hy het gedink: “Ek sal haar met hom laat trou, dan trap hy op dié manier in die slagyster en raak die Filistyne van hom ontslae.” Daarom het hy vir Dawid gesê: “Jy kry nou nog ’n kans om my skoonseun te word.” Saul het vir sy amptenare gesê: “Sê vir Dawid in die geheim: ‘Weet jy, die koning is erg oor jou, en al sy amptenare hou van jou. Jy moet daaraan dink om die koning se skoonseun te word.’” Toe Saul se amptenare dit vir Dawid in die oor fluister, het Dawid gesê: “Dink julle ’n mens kan so maklik die koning se skoonseun word? Ek het nie geld nie en ek is ’n onbelangrike man.” Saul se amptenare het vir hom gaan vertel wat Dawid gesê het. Saul sê toe: “Gaan sê vir Dawid, die koning wil wraak neem op sy vyande; daarom is die enigste betaling vir die bruid wat hy wil hê, die voorhuide van 100 Filistyne.” Saul het gehoop die Filistyne maak Dawid dood. Toe die amptenare vir Dawid sê wat die voorwaarde is, het hy besluit om die koning se skoonseun te word. Hy het dadelik aan die werk gespring, alles reggekry, saam met sy manne uitgegaan en 200 Filistyne doodgeslaan. Dawid het al hulle voorhuide gebring en dit vir die koning gegee sodat hy sy skoonseun kon word. Saul het Mikal toe met hom laat trou. Saul het self gesien en geweet dat die Here vir Dawid help en dat sy dogter Dawid liefhet. Daarom was hy nóg banger vir Dawid, en solank hy geleef het, was hy Dawid se vyand. Die Filistyne het baie keer teen die Israeliete oorlog gemaak, maar elke keer het Dawid beter gevaar as Saul se offisiere. So het Dawid beroemd geword. Saul het vir sy seun Jonatan en al sy offisiere gesê om Dawid dood te maak. Omdat Jonatan baie erg was oor Dawid, het hy dit vir hom gaan vertel: “My pa wil jou laat doodmaak,” het hy gesê. “Jy moet môreoggend lig loop. Kry vir jou ’n veilige plek en gaan kruip weg. Ek sal self môre saam met my pa uitgaan en in die veld waar jy wegkruip, met hom oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het by Saul vir Dawid gepleit en vir hom gesê: “Pa is koning; moet tog nie ’n verkeerde ding aan Dawid doen nie. Hy is Pa se onderdaan en hy het niks verkeerds aan Pa gedoen nie. Inteendeel, wat hy gedoen het, was net tot Pa se voordeel. Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn dood te maak, en die Here het ’n groot oorwinning vir die hele Israel gegee. Pa het dit self gesien en Pa was bly daaroor. Hoekom sou Pa dan nou sonde doen deur ’n onskuldige man soos Dawid dood te maak?” Saul het na Jonatan geluister en by die Here gesweer dat hy Dawid nie sou doodmaak nie. Jonatan het toe vir Dawid geroep en hom alles vertel. Hy het Dawid na Saul toe gevat en Dawid het weer soos voorheen vir Saul gewerk. Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het. ’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel. Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee. Saul het mense na Dawid se huis gestuur om die huis dop te hou en Dawid die volgende môre dood te maak. Maar Mikal, sy vrou, het hom gewaarsku: “Sorg dat jy vannag wegkom, anders is jy môre dood.” Sy het Dawid deur ’n venster laat afsak. Hy het gevlug en weggekom. Mikal het die beeld van die huisgod gevat en dit op die bed gesit. Sy het ’n deken oor die beeld gegooi en ’n bokhaarkombersie om die beeld se kop gedraai. Saul het mense gestuur om Dawid te vang, maar Mikal sê toe Dawid is siek. Saul het die manne teruggestuur om seker te maak dat Dawid daar is. Hy het vir hulle gesê: “Bring hom met bed en al. Ek wil hom doodmaak.” Toe hulle in sy kamer kom, kry hulle sowaar net die huisgod op die bed met die bokhaarkombersie om die ding se kop! Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my in die steek gelaat en my vyand gehelp om weg te kom?” Waarop Mikal toe antwoord: “Dis sy skuld. Hy het gesê ek moet hom help om weg te kom, anders maak hy my dood.” Dawid het intussen gesorg dat hy wegkom. Hy is na Samuel toe in Rama. Hy het vir Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy het toe saam met Samuel in die huis van die profete gaan bly. Toe Saul hoor dat Dawid in die huis van die profete in Rama is, het hy mense gestuur om hom te vang. Hulle kom toe daar af op ’n groep profete wat in profetiese ekstase is. Samuel het hulle gelei. Die Gees van God het in die manne van Saul begin werk sodat hulle ook in profetiese ekstase geraak het. Toe Saul dit hoor, het hy ander manne gestuur, maar ook húlle het in profetiese ekstase geraak. Saul het ’n derde groep gestuur en dieselfde het met hulle gebeur. Saul gaan toe maar self na Rama toe. Toe hy by die groot put in Seku kom, het hy gevra waar Samuel en Dawid is. Die mense het hom beduie na die huis van die profete in Rama. Saul het na die huis van die profete toe gegaan. Die Gees van God het ook in hóm begin werk sodat hy sommer so in die loop al in profetiese ekstase was. Toe hy by die huis van die profete kom, het hý ook sy klere uitgetrek en in profetiese ekstase voor Samuel neergeslaan. Hy het ’n hele dag en ’n nag so kaal bly lê. Daarom sê die spreekwoord: “Hoort Saul dan by die profete?” Dawid het gemaak dat hy wegkom van die profete se huis in Rama. Hy het by Jonatan gekom en vir hom gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Wat het ek aan jou pa gedoen dat hy my wil doodmaak?” “Nooit! Jy gaan nie doodgemaak word nie,” sê Jonatan vir hom. “Ek verseker jou, my pa doen niks voordat hy eers met my daaroor gepraat het nie, of dit nou ’n belangrike of ’n onbelangrike ding is. Waarom sou hy dit vir my wegsteek as hy jou wil doodmaak? Daar bestaan nie so iets nie.” Maar Dawid sê: “So waar as die Here leef, Jonatan, jou pa weet baie goed dat jy erg is oor my, en ek is seker hy het vir homself gesê: ‘Jonatan moet nie hiervan weet nie, want dit sal hom ontstel.’ Ek verseker jou, so waar as die Here leef en so waar as jy leef: daar is maar een tree tussen my en die dood.” Jonatan sê toe vir Dawid: “Sê dan maar wat wil jy hê ek vir jou moet doen.” Daarop sê Dawid: “Kyk, dis môre nuwemaan, dan móét ek saam met die koning eet. Gee vir my toestemming dat ek in die veld kan gaan wegkruip tot oormôreaand. As jou pa my regtig mis by die ete, moet jy vir hom sê: ‘Dawid het by my verlof gevra om dringend na sy tuisdorp, Betlehem, toe te gaan, want die hele familie kom daar bymekaar vir die jaarlikse offer.’ As jou pa sê: ‘Dis goed so,’ is jou getroue vriend veilig. Maar as jou pa baie kwaad word, moet jy weet hy het klaar besluit om van my ontslae te raak. Jy het my met ’n belofte voor die Here aan jou gebind as jou getroue vriend. As ek enigiets verkeerds gedoen het, doen my dan die guns en maak jý my dood. Maar moet my asseblief nie aan jou pa oorgee nie.” “Ek sal dit nooit doen nie,” sê Jonatan. “As ek doodseker is my pa wil van jou ontslae raak, sal ek jou vir seker laat weet.” “Ja, maar wie sal vir my kom sê of jou pa ’n dwars antwoord gegee het of nie?” vra Dawid. Jonatan sê vir Dawid: “Kom ons stap ’n bietjie veld toe.” Hulle twee het die veld in gestap, en daar het Jonatan vir Dawid gesê: “Ek belowe jou voor die Here, die God van Israel, dat ek oormôre teen hierdie tyd sal uitvind wat my pa se plan is. As dit goed lyk, sal ek vir seker iemand stuur om dit vir jou te kom sê. Maar as my pa vas besluit het om van jou ontslae te raak, sal ek jou laat weet en seker maak dat jy wegkom na ’n veilige plek. As ek dit nie doen nie, kan die Here my maar baie swaar straf. “Die Here sal jou help soos Hy vroeër my pa gehelp het. As ek nog leef, moet jy asseblief vir my goed wees soos die Here vir jou goed is, sodat ek nie doodgemaak word nie. En wanneer die Here elke vyand van jou van die aarde af uitroei, moet jy asseblief ook vir my familie goed wees solank jy leef.” So het Jonatan met Dawid se familie ’n ooreenkoms gemaak met die woorde: “Die Here sal sorg dat dit uitgevoer word.” Jonatan het Dawid ook laat sweer dat hy getrou sal bly aan hom, dat hy vir hom soveel sal omgee as wat hy vir homself omgee. Daarna sê Jonatan: “Môre is dit die nuwemaansfees. Hulle sal jou mis, want jou plek sal leeg wees. Gaan oormôre na die plek toe waar jy die vorige keer weggekruip het, dan gaan sit jy naby die Ezelrots. Ek sal maak of ek na ’n teiken skiet en drie pyle in die rigting van die rots skiet. Ek sal dan my wapendraer stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir die wapendraer sê: ‘Nee man, die pyle lê nader! Bring hulle!’ kan jy maar uitkom, want dan is dit veilig. Dan is daar, so waar as die Here leef, geen gevaar nie. Maar as ek vir die jong man sê: ‘Nee jong, die pyle lê verder!’ moet jy maak dat jy wegkom, want dan is dit die Here wat jou wegstuur. En onthou, solank ons leef, is die Here getuie van die belofte wat ons aan mekaar gemaak het.” Dawid het toe in die veld gaan wegkruip. Op die nuwemaansdag het koning Saul na die feesete toe gegaan. Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit. Abner het langs hom gesit en Jonatan regoor hom. Dawid se plek was leeg. Saul het daardie dag niks daaroor gesê nie, want hy het gedink: “Daar moes iets met Dawid gebeur het. Hy kon hom seker nie vir die ete gereedmaak nie en nou is hy onrein.” Maar die volgende dag, die tweede nuwemaansdag, was Dawid se plek wéér leeg. Toe vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie gister of vandag saam met ons kom eet nie?” Jonatan sê toe: “Dawid het by my toestemming gevra om Betlehem toe te gaan. Hy het gesê: ‘Verskoon my, asseblief; ons familie in Betlehem het ’n familieoffer, en my oudste broer het gesê ek moet kom. As dit vir jou reg is, sal ek graag wil gaan en my familie gaan sien.’ Daarom het hy nie na die koning se ete gekom nie.” Saul het hom bloedig vir Jonatan vererg en geskree: “Jou opstandige klein sot! Dink jy ek weet nie dat jy kant gekies het vir daardie seun van Isai nie? En dit tot jou eie skande en die skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het! Solank daardie seun van Isai leef, sal jy en jou koninkryk in gevaar wees! Gaan haal hom dadelik en bring hom hier! Hy moet doodgemaak word!” Maar Jonatan sê vir sy pa: “Hoekom moet hy doodgemaak word? Wat het hy verkeerd gedoen?” Toe mik Saul om Jonatan met die spies te gooi. Hy wou hom doodgooi. Jonatan het dadelik geweet sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak. Hy was baie kwaad en het van die tafel af opgestaan. Daardie hele dag het hy niks geëet nie. Hy was te ontsteld oor Dawid, oor sy pa hom wou doodmaak. Die volgende môre is Jonatan saam met ’n jong seun veld toe, soos hy met Dawid afgespreek het. Hy sê toe vir die knaap: “Hardloop en gaan haal die pyl wat ek skiet.” Die seun hardloop, en Jonatan skiet die pyl bo-oor hom. Toe die seun by die plek kom waar die pyl moet lê, skree Jonatan vir hom: “Lê die pyl nie nog verder nie?” En hy skree ook vir hom: “Maak baie gou! Moenie wag nie!” Die seun het die pyl opgetel en vir Jonatan gebring. (Die knaap het niks van die hele affêre geweet nie; net Jonatan en Dawid het daarvan geweet.) Jonatan gee toe sy wapens vir die seun en sê vir hom: “Vat dit terug dorp toe!” Toe die seun weg is, het Dawid agter die rots uitgekom. Hy het op sy knieë gaan staan en drie keer met sy gesig teen die grond gebuig. Toe omhels hulle mekaar en huil op mekaar se skouers totdat Dawid hom regruk. Jonatan sê toe vir Dawid: “Jy kan maar gaan. Jy is veilig, want ons twee het in die Naam van die Here ’n belofte aan mekaar gemaak; en die Here sal altyd sorg dat ek en jy en ons kinders daardie belofte nakom.” Dawid het toe sy goed gevat en weggegaan, en Jonatan is terug dorp toe. Dawid het in Nob by priester Agimelek aangekom. Agimelek het groot geskrik toe hy Dawid sien en vir hom gevra: “Hoekom kom jy alleen hier aan sonder iemand by jou?” Dawid sê toe vir priester Agimelek: “Die koning het my gestuur, maar hy het gesê ek mag vir niemand vertel waarheen hy my stuur en wat hy vir my gesê het nie. Ek sal my manskappe op ’n sekere plek kry. Maar sê my, wat het jy wat ’n mens kan eet? Gee my so vyf brode of wat jy ook al het.” Die priester sê toe vir Dawid: “Ek het nie gewone brood nie, net tempelbrood. Jy kan dit kry op voorwaarde dat jou manskappe rein is en nie seks gehad het nie.” “Maar natuurlik was ons nie by vroue nie,” antwoord Dawid. “Die manne is rein soos altyd wanneer ons gaan oorlog maak. Al is hierdie ’n gewone ding wat ons moet gaan doen, is die manne vir seker rein.” Die priester gee toe vir hom die tempelbrood, want daar was nie ander brood nie. Die enigste brood was dié wat die priesters by die altaar weggevat het toe hulle weer vars brood daar moes neersit. Een van Saul se werkers was daardie dag ook om die een of ander rede in die tempel. Sy naam was Doëg. Hy het uit Edom gekom en was die baas van Saul se skaapwagters. Dawid vra toe vir Agimelek: “Het jy nie dalk ’n spies of ’n swaard hier nie? Die koning het my so haastig gestuur, ek kon nie eers my spies of swaard of ander wapens vat nie.” Die priester antwoord hom: “Goliat, die Filistyn wat jy in Eikelaagte doodgemaak het, se swaard is hier. Dis toegedraai in ’n mantel daar agter die priestersak. As jy dit wil hê, kan jy dit kry. Dis die enigste swaard wat hier is.” “Daar is nie nóg so ’n swaard nie,” sê Dawid. “Gee hom vir my.” Dawid het daardie dag vir Saul gevlug en by Akis, die koning van Gat, uitgekom. Akis se paleiswerkers sê toe vir hom: “Maar dis mos Dawid, die koning van die land! Dis mos oor hóm wat die vroue sing as hulle in die rondte dans: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Toe Dawid agterkom wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat. Hy het toe voor hulle gemaak of hy mal is. Toe hulle hom vang, het hy hom stapelgek gehou: hy het met sy naels aan die deure by die dorp se ingang gekrap en die spoeg het oor sy baard geloop. “Kan julle nie sien die man is van sy kop af nie?” sê Akis vir die paleiswerkers. “Hoekom bring julle hom hier na my toe? Dink julle ek het mal mense nodig dat julle dié vent hierheen bring om sy manewales hier uit te haal? Vat hom uit my paleis uit!” Dawid het van daar af weggevlug na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en na hom toe gegaan. Mense wat in die moeilikheid was, wat in die skuld was of wat bitter was oor die een of ander ding, het ook na Dawid toe gegaan. Hy het hulle leier geword. Daar was omtrent 400 mense by hom. Dawid is daarvandaan na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gevra: “Kan my pa en ma asseblief hier by u kom bly tot ek weet wat God met my gaan doen?” Dawid het hulle toe by die koning van Moab gelos. Hulle het daar gebly so lank as wat Dawid in die berg weggekruip het. Die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Moenie in die berg wegkruip nie. Gaan na Juda toe.” Dawid het dit gedoen en na die Geretbos toe gegaan. Saul het gehoor dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. Saul het onder die tamariskboom op die bult by Gibea gaan sit met sy spies in sy hand. Al sy amptenare was by hom. Hy sê toe vir sy amptenare wat daar om hom staan: “Luister hier, manne van Benjamin! Dink julle daardie seun van Isai sal vir julle elkeen lande en wingerde gee? Sal hy julle leiers maak van groepe van 100 of 1  000 manskappe? Is dít die rede hoekom julle almal planne maak teen my en niemand my eers vertel dat my eie seun en daardie seun van Isai vir mekaar beloftes gemaak het nie? Nie een van julle gee meer vir my om nie, want niemand sal vir my kom sê dat my eie seun een van my werkers teen my opgesteek het sodat hy nou sy kans afwag om my by te kom nie! Dís nou hoe dit is!” Doëg, die man uit Edom, het self ook daar by Saul se amptenare gestaan. Hy sê toe: “Ek het gesien die seun van Isai kom daar by Nob aan, by Agimelek, Agitub se seun. Agimelek het vir hom by die Here uitgevind wat hy moet doen; hy het vir hom padkos gegee en hy het boonop nog Goliat se swaard ook vir hom gegee.” Die koning laat kom toe priester Agimelek, Agitub se seun, saam met sy hele familie wat almal priesters was in Nob. Hulle het almal na die koning toe gekom. Saul sê toe: “Luister mooi wat ek vir jou gaan sê, seun van Agitub!” “Ja, U Majesteit,” antwoord hy. Saul sê vir hom: “Hoekom het julle teen my planne gemaak, jy en daardie seun van Isai? Jy het vir hom kos gegee en ’n swaard en toe nog vir God ook gevra wat hy moet doen. Nou wag hy net sy kans af om teen my in opstand te kom. Dís hoe dit nou is!” Agimelek antwoord die koning: “Maar, U Majesteit, wie van al u werkers is so getrou soos Dawid, u eie skoonseun, hoof van u lyfwag, iemand vir wie almal in die paleis respek het? Dit was ook nie die eerste keer dat ek vir God gevra het wat Dawid moet doen nie. Ek het dit al baie gedoen! U Majesteit moet asseblief nie hierdie dienaar van u of sy familie van enigiets beskuldig nie, want ek het heeltemal niks geweet van hierdie hele saak nie.” “Jy moet doodgemaak word, Agimelek, jy en jou hele familie,” antwoord die koning. Hy sê toe vir sy wagte wat daar by hom staan: “Komaan! Maak die priesters van die Here dood, want húlle is ook aan Dawid se kant en hulle het geweet hy vlug, maar hulle het my nie kom sê nie!” Maar die koning se amptenare het g’n hand verroer nie; hulle wou nie die priesters van die Here aanval nie. Die koning sê toe vir Doëg: “Komaan jy! Doen jy dit!” Doëg, die Edomiet, het self op die priesters toegesak en hulle aangeval. Hy het daardie dag 85 mans wat priesterklere aangehad het, doodgemaak. Hy het ook alles in Nob, die dorpie waar die priesters gebly het, doodgemaak: mans en vroue, kinders, babatjies, beeste, donkies, skape en bokke. Almal is voor die voet met swaarde doodgesteek. Net een van Agimelek se seuns het weggekom. Dit was Abjatar. Hy het na Dawid toe gevlug en vir hom vertel dat Saul die priesters van die Here vermoor het. Dawid het vir Abjatar gesê: “Daardie dag in die tempel toe Doëg, die Edomiet, daar was, het ek voor my siel geweet hy gaan dit vir Saul vertel. Ék moet die skuld kry vir wat met jou familie gebeur het. Bly by my. Moenie bang wees nie, want die een wat jóú wil doodmaak, wil mý ook doodmaak. By my is jy veilig.” Dawid het gehoor dat die Filistyne besig was om die dorp Keïla aan te val en die mense se koring te steel. Dawid het toe deur die priester vir die Here gevra: “Moet ek hierdie klomp Filistyne gaan aanval?” Die Here het geantwoord: “Ja, gaan val hulle aan dat Keïla weer vry kan wees.” Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Ag nee, man! Ons het al genoeg moeilikheid hier in Juda, wat nog as ons Keïla toe gaan en die soldate van die Filistyne gaan aanval!” Dawid het toe weer deur die priester die Here se raad gaan vra. Die Here het hom geantwoord: “Maak klaar en gaan af na Keïla toe, want Ek gaan die Filistyne aan jou oorgee.” Dawid en sy manne is toe na Keïla toe. Hulle het teen die Filistyne geveg, hulle vee afgeneem en baie van hulle doodgemaak. So het Dawid die mense van Keïla gered. [6-9] Saul het gehoor Dawid het na Keïla toe gegaan. Hy het gedink: “God het hom om die bos gelei en hy is nou in my mag. Hy is vasgekeer in ’n dorp met deure en sluitbalke.” Saul het toe al die burgers opgeroep vir oorlog. Hulle moes na Keïla toe gaan en Dawid en sy manne in die dorp vaskeer. Toe Dawid hoor wat Saul se plan met hom is, het hy vir priester Abjatar gesê: “Bring die priestersak waarmee jy uitvind wat die Here sê.” (Abjatar, Agimelek se seun, het die priestersak saamgevat toe hy na Dawid toe gevlug het in Keïla.) *** *** *** Dawid sê toe: “Here, God van Israel, hierdie dienaar van u het sonder twyfel gehoor dat Saul van plan is om na Keïla toe te kom en die dorp uit te wis omdat ek hier is. Sal die burgers van Keïla my aan Saul oorgee? Sal Saul hierheen kom, soos ek gehoor het? Here, God van Israel, sê my asseblief wat gaan gebeur!” Die Here het geantwoord: “Ja, Saul gaan hierheen kom.” Dawid vra toe weer: “En sal die leiers van Keïla my en my manne aan Saul oorgee?” “Ja, hulle gaan julle oorgee,” antwoord die Here. Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie. Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie. Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak. Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was, het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou. Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.” Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly. Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn. As U Majesteit dan nou graag daarheen wil kom, kan u gerus kom. Ons sal sorg dat U majesteit hom in die hande kry.” “Die Here sal nog goed wees vir julle omdat julle vir my omgee,” het Saul gesê. “Gaan nou terug, dan maak julle weer doodseker: julle moet weet waar sy lêplek is, waar hy rondloop en wie hom gesien het. Hulle sê vir my hy is baie skelm. Maak seker dat julle al die plekke waar hy wegkruip, goed ken. Kom dan terug na my toe met goeie inligting. As hy in die omgewing is, sal ek saam met julle gaan en hom uitsnuffel tussen al die mense van Juda.” Die mense het teruggegaan Sif toe. Saul sou later daarheen gaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die Arabavlakte suid van die Jeshimonwoestyn. Saul en sy manskappe het die soektog begin. Toe Dawid dit hoor, het hy afgegaan na die rotskop in die Maonwoestyn en daar gebly. Dit het by Saul uitgekom, en hy is agter Dawid aan, die Maonwoestyn in. Saul het al langs die een kant van die kop getrek, terwyl Dawid aan die ander kant van die kop so al wat hy kan probeer om van Saul af weg te kom. Toe Saul en sy manne op die punt is om Dawid en sy manne te omsingel en hulle vas te trek, kom daar ’n boodskapper by Saul aan en sê vir hom: “Maak baie gou, die Filistyne is besig met strooptogte in die land!” Saul het toe opgehou om Dawid te probeer vang en teruggegaan om teen die Filistyne te veg. Dit is waarom hulle die plek Skeidingrots noem. Dawid het daarvandaan vertrek en in die berge by En-Gedi gaan wegkruip. Toe Saul terug is by die huis nadat hy die Filistyne uitgejaag het, het hy gehoor Dawid is in die En-Gediwoestyn. Saul het met drie afdelings van die heel beste manskappe van Israel gegaan om Dawid en sy manne by die kranse van die Klipbokrotse te gaan soek. Op pad daarheen het hulle by skaapkrale uitgekom waar daar ’n grot is. Saul het in die grot ingegaan om ’n draai te loop. Dawid en sy manne was al die tyd agter in die grot! “Vandag is die dag!” sê Dawid se manne vir hom. “Die Here het mos vir jou gesê: ‘Ek gaan jou vyand aan jou oorgee en jy kan met hom maak wat jy wil.’” Dawid het opgestaan en stilletjies ’n stuk van Saul se mantel afgesny. Maar nadat hy dit gedoen het, het hy sleg gevoel daaroor. Hy sê toe vir sy manne: “Die Here bewaar my daarvan dat ek so ver sou gaan om my hand op te lig teen my koning, die man wat die Here vir Hom gekies het. Hy is tog die Here se gesalfde!” Dawid het baie ernstig met sy manne gepraat. Hy het hulle nie toegelaat om enigiets aan Saul te doen nie. Toe Saul opstaan en uit die grot uitgaan, het Dawid agter hom aangegaan. Hy het na Saul geroep: “U Majesteit!” Toe Saul omkyk, gaan staan Dawid op sy knieë en buig met sy gesig teen die grond. Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u uit die pad kry? U besef tog self dat die Here u vandag hier in die grot aan my oorgegee het. My manne het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u jammer gekry en gesê ek sal nie my hand lig teen my koning nie, want hy is die Here se gesalfde. Kyk hier, my vader, hier het ek ’n stuk van u mantel. Ek het dit afgesny sonder om u dood te maak! Dis tog die bewys dat ek nie teen u in opstand is of iets slegs beplan of u te na wil kom nie, al probeer u om my dood te maak. Die Here sal besluit wie van ons twee is reg, en die Here sal dalk op u wraak neem oor my, maar ék sal nooit my hand teen u oplig nie. Daar is mos ’n ou spreekwoord wat sê: Net kwaaddoeners doen kwaad. Daarom sal ek nooit my hand teen u oplig nie. Buitendien, teen wie het die koning van Israel nou eintlik uitgetrek? U is agter ’n dooie hond, agter een ou sandluisie aan! Die Here sal regter wees en die saak tussen ons uitmaak, want Hy sien alles raak. Hy sal my help en wys dat ek nie skuldig is nie.” Toe Dawid klaar gepraat het, sê Saul: “Is dit jý wat daar praat, Dawid, my kind?” Toe bars hy in trane uit en huil hardop. Hy sê vir Dawid: “Jy is ’n beter mens as ek. Jy het aan my goed gedoen en ék wou jou kwaad aandoen. Jy het my vandag laat sien dat jy dit met my goed bedoel, want toe die Here my aan jou oorgegee het, het jy my nie doodgemaak nie. Watter ander mens sal sy vyand in die hande kry en hom dan sonder skade laat wegkom? Die Here sal aan jou goed doen vir wat jy vandag aan my gedoen het. Ek weet nou vir seker dat jy koning gaan word en dat die koningskap van Israel in jou familie gaan bly. Daarom moet jy my voor die Here belowe dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en dat jy so sal sorg dat my naam onder my mense voortleef.” Dawid het dit vir Saul belowe. Saul is daarna huis toe, maar Dawid en sy manne het weer opgegaan na die veilige plekke in die berge. Samuel is oorlede en die hele Israel het saamgekom om oor hom te huil. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe. Dawid het afgegaan na die Maonwoestyn. Daar was ’n man in Maon wat ook ’n plek by Karmel gehad het. Dié man was skatryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape in Karmel te skeer. Die man se naam was Nabal. Hy was van die Kalebstam. Sy vrou se naam was Abigajil. Sy was ’n mooi en slim vrou, maar hy was ’n hardkoppige en gemene vent. Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer. Hy stuur toe tien jong manne en sê vir hulle: “Gaan na Nabal toe in Karmel en sê vir hom ek stuur groete. Sê vir hom ek wens hom alle voorspoed toe: vir hom, vir sy familie en vir sy boerdery. [7-8] Sê vir hom ek het gehoor dis skeertyd. As hy vir sy werkers vra, sal hulle hom vertel dat ons sy skaapwagters altyd goed behandel het as hulle in ons omgewing was. In al die tyd wat hulle by Karmel was, het daar nooit ’n skaap weggeraak nie. Daarom verwag ek dat hy julle vriendelik sal ontvang. Dis buitendien ’n feestyd. Sê vir hom ek vra beleef dat hy vir my en vir julle sal gee wat hy kan.” *** Die jong manne het gegaan en namens Dawid alles presies net so vir Nabal gesê en vir sy antwoord gewag. Nabal sê toe vir Dawid se mense: “Wie is dié Dawid? En wie is dié seun van Isai miskien? Vaderland, daar is deesdae ook so baie slawe wat van hulle base af wegloop! Dink julle nou regtig ek sal my brood en water en die skape wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir mense gee wat ek van g’n kant af ken nie?” Die manne van Dawid het net daar omgedraai en teruggegaan. Toe hulle by Dawid kom, het hulle hom alles vertel. “Kry julle swaarde, manne,” het Dawid gesê. Elkeen het sy swaard in sy lyfband gesteek; Dawid ook. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om die goed op te pas. Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak. En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie. Solank ons met die skape naby hulle gewei het, was hulle dag en nag soos ’n muur om ons. U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.” Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai. Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie. Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom. Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank. God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!” Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig. Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister? U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie. So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan. Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is. En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie; en as daar mense is wat u agtervolg om u te probeer doodmaak, sal die Here u God u veilig by Hom hou soos ’n herder ’n klippie veilig in sy sak bêre. Maar die lewe van u vyande sal die Here weggooi soos ’n herder ’n klip met ’n slingervel weggooi. Wanneer die Here vir u al die goeie dinge wat Hy u belowe, waar maak en u aanstel as die leier van Israel, sal hierdie ding van Nabal nie in u pad wees nie, en sal u gewete u nie pla dat u eie reg gebruik en mense onskuldig doodgemaak het nie. En as die Here vir u al die mooi dinge waar gemaak het, dink tog dan aan hierdie nederige vrou.” Daarop sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word dat Hy jou vandag na my toe gestuur het! Jy is ’n baie slim vrou! Dankie dat jy vandag gekeer het dat ek eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek sê vir jou, so waar as die Here, die God van Israel leef: Hy het gekeer dat ek jou baie seer maak, want as jy nie so gou gemaak en my op die pad gekry het nie, sou nie een van die mans of seuns by Nabal môre die son sien opkom het nie.” Dawid het die goed wat sy vir hom gebring het, aanvaar en gesê: “Jy kan maar huis toe gaan sonder om bekommerd te wees. Kyk, ek het gehoor wat jy vra, en ek sal dit vir jou doen.” Toe Abigajil by die huis kom, sien sy dat Nabal besig is met ’n verskriklike drinkparty. Hy was vrolik, maar smoordronk. Sy het toe maar nie ’n woord gesê voor die volgende môre nie. Die volgende môre, na hy sy roes afgeslaap het, het sy hom vertel wat gebeur het. Hy het ’n aanval gekry en was in ’n koma. Omtrent tien dae later het die Here hom weer ’n aanval laat kry en is hy dood. Toe Dawid hoor Nabal is dood, het hy gesê: “Die Here moet geprys word, want Hy het my saak teen Nabal behartig toe dié my verneder het. Die Here het my, sy dienaar, gekeer dat ek nie ’n lelike ding aanvang nie. Die Here het Nabal sy verdiende loon gegee.” Dawid het mense na Abigajil toe gestuur om te hoor of sy met hom sal trou. Hulle het by haar in Karmel aangekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na jou gestuur omdat hy met jou wil trou.” Sy het opgestaan en met haar gesig teen die grond gebuig en gesê: “Ek is bereid om sy slavin te wees en vir hom slawewerk te doen.” Abigajil het gou gereedgemaak en op ’n donkie geklim. Haar vyf diensmeisies was by haar. Sy het saam met Dawid se mense gegaan en met hom getrou. Dawid was ook getroud met Aginoam wat uit Jisreël gekom het. Hy het dus twee vroue gehad. Saul het sy dogter, Mikal, Dawid se eerste vrou, met Palti laat trou. Palti, wat van Gallim af gekom het, was Lajis se seun. Daar het mense van Sif af na Saul toe in Gibea gekom en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar op die Gakilarant, oorkant die Jeshimonwoestyn wegkruip?” Saul het toe alles agtermekaar gekry en afgegaan na die Sifwoestyn met drie groepe van die beste manne van Israel om na Dawid te gaan soek. Saul het langs die pad op die Gakilarant kamp opgeslaan wat oorkant die Jeshimonwoestyn lê. Dawid was nog in die woestyn en toe hy sien Saul kom soek dáár ook na hom, het hy verkenners uitgestuur en presies uitgevind waar Saul is. Dawid het toe self na die plek gegaan waar Saul se kamp is en gesien waar Saul en generaal Abner, Ner se seun, slaap. Die manskappe het in ’n kring gelê en slaap, met Saul in die middel. Agimelek, die Hetiet, en Abisai, Joab se broer (hulle was Seruja se seuns), was by Dawid. Hy vra toe vir hulle: “Wie sal saam met my na Saul toe gaan in die kamp?” “Ék sal saam met jou gaan,” antwoord Abisai. Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek. “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.” “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie. So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom. Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.” Dawid het die spies en die waterkruik wat by Saul se kop was, gevat en toe het hulle twee padgegee. Niemand het hulle gesien of eers geweet dat hulle daar was nie. Die manskappe was vas aan die slaap; nie een het wakker geword nie, want die Here het elkeen van hulle soos ’n klip laat slaap. Dawid het deur die valleitjie gegaan en aan die ander kant op ’n veilige afstand op ’n hoë rots gaan staan. Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?” Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?” Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak! Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!” Saul het Dawid se stem herken en gevra: “Is dit jóú stem wat ek hoor, Dawid, my kind?” Dawid het geantwoord: “Ja, U Majesteit, dis mý stem!” Verder sê hy: “U Majesteit, waarom vervolg u my? Wat het ek verkeerd gedoen en waaraan is ek skuldig? Luister tog asseblief na wat ek sê, U Majesteit: As dit die Here is wat u teen my opsteek, bring dan vir Hom ’n offer. Maar as dit mense is, is hulle vervloek voor die Here, want hulle het my nou weggejaag uit die land wat aan die Here behoort en waar ek mag woon. Hulle het as’t ware vir my gesê: ‘Gaan dien maar ander gode!’ Moet tog nie dat ek op vreemde grond, ver van die Here se altaar af doodgaan nie. Het die koning van Israel regtig ’n hele leër gevat om een enkele sandluis te soek, om een ou patrysie in die berge te kom jag?” Saul het geantwoord: “Ek het ’n groot fout gemaak. Kom terug, Dawid, my kind. Ek sal jou nie weer probeer doodmaak nie, want mý lewe was vandag vir jou kosbaar. Ek was regtig dom en het ’n groot fout gemaak.” Dawid sê toe vir hom: “Hier is u spies, U Majesteit. Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. Die Here is goed vir elke mens wat regverdig en getrou is. Hy het u vannag in my mag gegee en tog het ek nie my hand teen die Here se gesalfde opgelig nie. Ek hoop regtig die Here sal net soveel waarde aan my lewe heg as wat ek vannag aan u lewe geheg het, en dat Hy my uit elke moeilikheid sal red.” Daarop antwoord Saul hom: “Die Here sal vir jou goed wees, Dawid, my kind. Jy gaan nog groot dinge doen en baie sukses behaal.” Dawid het daarna sy eie koers gegaan en Saul is terug na sy plek toe. Dawid het vir homself gesê: “Eendag is eendag, dan val ek nog in Saul se hande. Dit sal beter wees as ek so gou moontlik padgee na die Filistyne se gebied toe; dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek. So sal ek van hom ontslae raak.” Daarom het Dawid met sy 600 man oorgetrek na Maok se seun Akis wat toe die koning van Gat was. Die manne het hulle huisgesinne ook saamgeneem. Dawid het al twee sy vroue saamgevat: Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel. Hulle het almal by Akis in Gat gebly. Die mense het vir Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het daarna opgehou om hom te probeer vang. Dawid het vir Akis gesê: “Kan ek nie maar ’n plek kry in een van u plattelandse dorpe en daar gaan bly nie? Dis mos nie nodig dat ek hier by u in die hoofstad bly nie.” Akis het daardie selfde dag Siklag vir Dawid gegee. Daarom behoort Siklag vandag nog aan die konings van Juda. Dawid het ’n jaar en vier maande in die Filistyne se gebied gebly. Terwyl hy daar was, het hy en sy manne strooptogte uitgevoer op die Gesurstam, op die mense van Geser en die Amalekiete. Hierdie mense het in die streek van Telam af na Sur toe en tot by Egipte gebly. Wanneer Dawid so ’n gebied aangeval het, het hy al die mense doodgemaak. Maar die skape en beeste en donkies en kamele en die mense se klere het hy saamgevat. Dan het hy altyd na Akis toe teruggegaan. As Akis hom dan vra: “Waar het julle nóú weer ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die Negev van Juda,” of “in die Negev waar die Jeragmeëlfamilie bly,” of “in die Negev waar die Keniete bly.” Dawid het nooit enige man of vrou lewendig na Gat toe gevat nie, want hy het gedink: “Anders verraai hulle ons en sê: ‘Dis wat Dawid gedoen het.’” Dit was Dawid se manier so lank as wat hy in die gebied van die Filistyne gebly het. Akis het Dawid vertrou. Hy het gedink Dawid het sy naam so sleg gemaak by sy eie mense in Israel dat hy altyd vir hom wat Akis is, sou werk. Toe die Filistyne in dié tyd hulle manskappe reggekry het om teen Israel oorlog te maak, het Akis vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my sal moet gaan oorlog maak.” “Maar natuurlik,” het Dawid geantwoord. “U Majesteit sal self sien wat ek kan doen.” “Goed so,” het Akis gesê. “Dan is jy, so lank as wat die oorlog aanhou, my persoonlike lyfwag.” Samuel was dood en die mense het klaar oor hom getreur en hom in sy tuisdorp, Rama, begrawe. Intussen het Saul al die mense wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land verban. Die Filistyne het bymekaargekom en by Sunem kamp opgeslaan. Saul het al die Israeliete op die Gilboaberg laat saamtrek. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy baie benoud geraak. Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Hy kon nie deur drome of deur die heilige klippies of by profete ’n antwoord van die Here kry nie. Hy sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my ’n vrou wat geeste kan oproep. Ek wil na haar toe gaan en vir haar raad vra.” Sy amptenare sê toe vir hom: “Daar is ’n vrou in Endor wat geeste oproep.” Saul het homself vermom en gewone klere aangetrek. Hy en twee van sy werkers het in die nag na die vrou toe gegaan. Daar aangekom, sê hy vir haar: “Jy moet asseblief vir my iemand se gees oproep. Ek sal vir jou sê wie s’n.” Die vrou sê vir hom: “Maar jy weet mos wat Saul gedoen het: hy het dié wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land uitgeroei. Wil jy my laat doodmaak deur my in ’n lokval te lei?” Saul het vir haar voor die Here gesweer en gesê: “So waar as die Here leef, jy sal niks oorkom nie.” Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou oproep?” Hy antwoord: “Roep Samuel vir my op.” Toe die vrou Samuel sien, het sy hard gegil. Sy het vir Saul gesê: “Hoekom het u my om die bos gelei? U is Saul!” “Moenie bang wees nie,” sê koning Saul vir haar, “sê vir my wat jy sien.” Die vrou antwoord hom: “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom!” “Hoe lyk hy?” vra Saul. Sy antwoord: “Dis ’n ou man met ’n profetemantel aan.” Toe weet Saul dis Samuel. Hy het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Samuel vra toe vir Saul: “Hoekom pla jy my? Hoekom laat jy my oproep?” Saul antwoord hom: “Ek is baie diep in die moeilikheid: die Filistyne maak oorlog teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete of drome nie. Ek het jou laat oproep om te hoor wat ek moet doen.” Samuel sê vir hom: “Maar hoekom kom vra jy mý as die Here die rug vir jou gedraai en jou vyand geword het? Die Here doen maar net wat ek vir jou gesê het Hy gaan doen: Hy het jou koningskap van jou afgeskeur en dit aan iemand anders, aan Dawid, gegee. Die Here doen dit aan jou omdat jy nie na Hom wou luister nie. Hy was kwaad vir die Amalekiete en jy moes hulle uitgeroei het. Die Here gaan die Israeliete saam met jou aan die Filistyne oorgee. Môre sal jy en jou seuns by my in die onderwêreld wees. Ja, die Here gaan die leër van Israel teen die Filistyne laat verloor.” Toe Saul hoor wat Samuel sê, het hy só geskrik dat hy net daar, so groot as wat hy is, op die grond neergeslaan het. Hy het in elk geval nie meer krag in sy lyf gehad nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Die vrou het nader gekom en gesien hoe Saul op die grond lê en ruk. Sy sê toe vir hom: “My koning, ek het na u geluister; ek het my lewe gewaag en gedoen wat u vir my gesê het. Nou moet u asseblief ook na mý luister: laat ek vir my koning ’n stukkie brood bring dat u weer krag kan kry vir die pad wat voorlê.” Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!” Die twee werkers wat saam met hom was en die vrou het só by hom aangehou dat hy naderhand na hulle geluister en van die grond af opgestaan het. Hy het op die bed gaan sit. Die vrou het ’n kalf in die stal by die huis gehad. Sy het die kalf so gou as wat sy kon, geslag. Sy het meel gevat, deeg aangemaak en platbrood gebak. Sy het die kos vir Saul en sy werkers voorgesit. Hulle het geëet, daarna opgestaan en dieselfde nag weer weggegaan. Die Filistyne het al hulle manskappe by Afek bymekaargebring. Die Israeliete se kamp was by die fontein wat in die Jisreëlvlakte is. Die regeerders van die Filistynse stadstate het met hulle leërafdelings van honderde duisende man uitgetrek. Dawid en sy manne het saam met Akis die agterhoede gevorm. Die Filistynse regeerders sê toe: “Maar wat soek hierdie klomp Hebreërs hier?” Waarop Akis hulle antwoord: “Dis mos Dawid, een van Saul, die koning van Israel, se offisiere. Hy is al ’n hele ruk by my. Vandat hy van Saul af weggeloop het tot vandag toe kon ek nog nie met hom fout vind nie.” Maar die Filistynse regeerders was die joos in vir Akis en sê vir hom: “Laat die man dadelik omdraai! Stuur hom terug na die plek toe waar jy gesê het hy kan bly. Hy trek nie saam met ons uit oorlog toe nie. Netnou spring hy om in die geveg. Daar is nie ’n beter manier om sy koning se guns te wen as met ons eie mense se koppe nie! Dis mos hierdie einste Dawid oor wie die vroue sing as hulle in die rondte dans: ‘Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.’” Akis het Dawid laat roep en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is betroubaar en ek dink dis goed dat jy op al ons veldtogte saam met my is, want vandat jy by my gekom het tot nou, het jy, wat my betref, nog niks verkeerds gedoen nie. Maar die regeerders van die Filistynse stadstate vertrou jou nie. Gaan nou maar terug en wees rustig en moenie iets doen waarvan hulle nie hou nie.” Dawid het vir Akis gesê: “Maar wat het ek verkeerd gedoen? Kan u u vinger op enigiets lê wat ek gedoen het, vandat ek by u gekom het tot vandag toe, wat ’n rede kan wees waarom ek nie teen U Majesteit se vyande mag gaan veg nie?” Akis het hom geantwoord: “Ek weet, ek weet! Vir my was jy soos ’n engel uit die hemel! Maar die Filistynse regeerders het gesê jy mag nie saam met ons oorlog toe gaan nie. Maak nou môre vroeg klaar, jy en al Saul se onderdane wat saam met jou gekom het, en dan vertrek julle sodra dit lig word.” Dawid en sy manne het toe vroeg opgestaan en na die gebied van die Filistyne teruggegaan. Die Filistyne het daarna teen die Israeliete in Jisreël gaan veg. Toe Dawid en sy manne twee dae later by Siklag aankom, is die dorp afgebrand. Die Amalekiete was op ’n strooptog in die Negev, en Siklag het ook in die slag gebly. Die Amalekiete het niemand doodgemaak nie, maar hulle het al die vroue en kinders gevang en met hulle saamgevat. Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en seuns en dogters ontvoer is, het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar. Dawid se twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel, is natuurlik ook ontvoer. Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God. Hy het vir priester Abjatar, Agimelek se seun, gesê: “Bring vir my die priestersak.” Abjatar het die priestersak vir Dawid gebring, en toe vra hy vir die Here: “Moet ek agter hierdie klomp rowers aangaan en sal ek hulle kan inhaal?” Die antwoord was: “Ja, sit hulle agterna. Jy sal hulle vir seker inhaal en jou mense red.” Dawid en sy 600 man is toe agter die rowers aan. Toe hulle by die Besorspruit kom, het party manne halt geroep. Twee honderd van die manne was eenvoudig te swak om deur die loop te gaan. Dawid is toe met 400 man verder. Die manne het ’n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het vir hom brood en water gegee. Toe hy dit klaar geëet en gedrink het, gee hulle hom ook nog ’n hand vol gedroogde vye en twee rosyntjiekoeke. Nadat hy dít geëet het, het hy begin regkom, want hy het vir drie dae en nagte nie nat of droog oor sy lippe gehad nie. Dawid vra toe vir hom: “Van wie se mense is jy en waar kom jy vandaan?” Die jong man antwoord hom: “Ek is ’n Egiptenaar. Ek is ’n slaaf van een van die Amalekiete. Omdat ek siek geword het, het my baas my drie dae gelede hier gelos. Ons was op ’n strooptog in die Negev waar die Filistyne en Judeërs en die Kalebfamilie bly. Ons het Siklag afgebrand.” “Kan jy my wys waar hierdie spul rowers is?” vra Dawid hom. Hy sê toe: “As u vir my by God sweer dat u my nie sal doodmaak of my vir my baas sal teruggee nie, sal ek u na hulle toe vat.” Hy het vir Dawid gaan wys waar hulle is. Die klomp is toe sowaar besig om fees te vier met die goed wat hulle in die plekke van die Filistyne en die Judeërs gevat het: hulle lê toe sommer die wêreld vol en eet en drink. Dawid het die volgende môre toe dit lig word, teen hulle begin veg en tot die aand aangehou. Behalwe 400 jong manne wat op kamele gespring en weggejaag het, het daar nie een van hulle weggekom nie. Dawid het al die mense wat die Amalekiete gevang het, gered, ook sy eie twee vroue. Nie een enkele mens is vermis nie; al die kinders en al die goed, ja, elke dingetjie wat die Amalekiete gevat het, het Dawid teruggekry. Hy het al die skape en beeste wat by die Amalekiete was, laat aankeer. Die mense het hierdie diere in ’n trop aangejaag voor die ander diere wat by hulle was. Hulle het gesê: “Hierdie is Dawid se goed.” Die 200 man wat by die Besorspruit agtergebly het omdat hulle te gedaan was om saam met Dawid te gaan, het vir hom en die ander mense op die pad gewag. Toe Dawid by hulle kom, het hy vir hulle gevra hoe dit gaan. Onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, was daar ’n paar moeilikheidmakers, sommer slegte mense. Hulle sê toe: “Oor hierdie mense nie saam met ons was nie, kry hulle niks van die goed wat ons teruggebring het nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat, en dan moet hy maak dat hy wegkom!” “A nee a, vriende!” sê Dawid. “Só kan ons darem nie maak met wat die Here vir ons gegee het nie! Hý het ons beskerm en daardie spul rowers wat ons aangeval het, in ons mag gegee. Ek is seker niemand sal met julle saamstem nie. “Óns reël is: die een wat in die oorlog baklei en die een wat by die voorrade bly, moet altyd dieselfde kry. Ons deel daarom gelykop.” Dawid het dit ’n vaste reël gemaak vir die Israeliete, en van toe af tot nou toe maak hulle so. Toe Dawid in Siklag aankom, het hy van die goed wat hulle by die Amalekiete gevat het, vir die leiers van Juda gestuur wat sy vriende was. Hy het vir hulle laat weet: “Hier is vir julle ’n geskenk uit die goed wat by die Here se vyande afgeneem is.” Dit is gestuur na die leiers van Bet-El, Ramot in die Negev, Jattir, Aroër, Sifmot, Estemoa, Rakal, die dorpe van die Jeragmeëlfamilie, die dorpe van die Keniete, Gorma, Bor-Asan, Atak, Hebron en al die ander plekke waar Dawid en sy manne rondgeswerf het. Die Filistyne het die Israeliete aangeval. Die manskappe van Israel het vir die Filistyne begin vlug en baie is op Gilboaberg dood. Die Filistyne het Saul en sy seuns ingehaal, en al drie sy seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak. Toe keer hulle Saul vas. Die manne wat met pyl en boog skiet, het hom onder skoot gekry en hom ernstig gewond. Hy sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard uit en steek my dood. Anders kom hierdie klomp heidene en steek my met hulle swaarde en laat my ly.” Maar die wapendraer was te bang om dit te doen. Saul vat toe sy eie swaard en pleeg selfmoord. Toe die wapendraer sien Saul is dood, het hý ook sy swaard gevat en soos Saul selfmoord gepleeg. So is Saul, sy drie seuns, sy wapendraer en al sy manskappe op dieselfde dag saam dood. Die Israeliete wat in die Jisreëlvlakte en in die Jordaanvallei gebly het, het gesien die manskappe van Israel vlug en hulle het agtergekom dat Saul en sy seuns dood is. Daarom het hulle uit hulle dorpe gevlug. Die Filistyne het later daar gaan woon. Die dag na die geveg het die Filistyne die klere en wapens wat aan die lyke was, gaan afhaal. Hulle kry toe vir Saul en sy drie seuns waar hulle dood lê op Gilboaberg. Hulle het sy kop afgekap en sy oorlogsklere en wapens gevat. Hulle het mense deur hulle hele land rondgestuur om in hulle afgodstempels en vir al die mense die goeie nuus te vertel. Hulle het sy oorlogsklere en wapens in die tempel van die Astartegodin neergesit en sy lyk aan die muur van Bet-San opgehang. Die mense van Jabes in Gilead het gehoor wat die Filistyne met Saul gedoen het. Al die manne van Jabes wat kon veg, het bymekaargekom en dwarsdeur die nag geloop om die lyke van Saul en sy seuns van Bet-San se muur af te haal. Hulle het die lyke na Jabes toe gevat en dit daar aan die brand gesteek. Wat van die lyke oorgebly het, het hulle onder die tamariskboom by Jabes begrawe. Daarna het hulle ’n week lank getreur en nie geëet nie. Dawid het weer in Siklag aangekom na sy geveg teen die Amalekiete. Dit was net na Saul se dood. Hulle was so twee dae terug in die dorp, toe kom daar ’n man aan wat saam met Saul in die oorlog was. Sy klere was geskeur en hy het grond op sy kop gehad. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gaan staan en laag gebuig. Toe Dawid hom vra waar hy vandaan kom, antwoord die man: “Ek het weggekom uit die oorlog waarin die Israeliete veg.” “Wat het gebeur? Vertel my!” sê Dawid. Die jongman vertel toe hoe die manskappe gevlug het, hoe baie daar dood is en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is. “Maar hoe weet jy Saul en sy seun Jonatan is dood?” vra Dawid. Die man wat die boodskap gebring het, sê: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar sien ek toe vir Saul waar hy swaar op sy spies leun. Die soldate in die strydwaens was al op hom. Hy kyk toe om en sien my raak. Hy wink my nader, en ek vra vir hom: ‘Kan ek help?’ Toe vra hy my: ‘Wie is jy?’ Ek sê toe: ‘Ek is ’n Amalekiet.’ Hy sê vir my: ‘Kom staan hier by my en gee my die doodsteek. Ek haal nog asem, maar ek is gedaan.’ Ek het toe by hom gaan staan en hom doodgesteek, want ek het geweet hy sal dit nie maak nadat hy so sleg verloor het nie. Ek het die tulband om sy kop en die armband om sy arm afgehaal en dit vir u gebring. Hier is dit.” Dawid het sy klere gegryp en dit stukkend geskeur. Al sy manne het dieselfde gedoen. Hulle het daardie hele dag niks geëet nie. Hulle het gehuil en hardop uitgeroep: “Arme Saul! Arme Jonatan! Die arme volk van die Here! Die arme Israeliete wat in die oorlog dood is!” Dawid het vir die jongman wat die boodskap gebring het, gevra: “Hoe het jy gesê, waar kom jou mense vandaan?” Hy antwoord hom: “My pa is ’n Amalekiet wat net vir ’n rukkie in die land bly.” Dawid sê vir hom: “O so, en toe is jy nie eens bang om jou hand vir die gesalfde koning van die Here op te tel en hom dood te maak nie!” Dawid roep toe een van sy jongmanne. “Kom hier!” sê hy vir hom. “Maak dié man van kant!” Die man het toe die Amalekiet doodgemaak. Dawid se laaste woorde aan hom was: “Jou dood kan nie gewreek word nie, want jy het met jou eie mond erken dat jy die dood verdien toe jy gesê het: ‘Ek het self die gesalfde koning van die Here die doodsteek gegee.’” Dawid het ’n treurlied oor Saul en sy seun Jonatan gedig. Die lied se naam is “Die Boog”. Dit is opgeteken in die Boek van die helde. Dawid het gesê al die mense van Juda moet dit leer. Dit klink só: Israel, op jou berge lê jou beste manne dood! Die helde het geval! Vertel dit nie in Askelon, in Gat nie; hou dié nuus dig vir elke mens op straat! Want anders is die heidene weer bly, hou die Filistyne se vroue ’n fees! Gilboaberg, jou vervloekte plek! Ek wens dit dou nooit op jou nie, ek hoop dit reën nooit op jou hoë weiveld nie. Op jóú lê daar ’n held se skild in die grond getrap. Dis Saul se skild vol bloed. Niemand sal dit ooit weer by die huis met olie smeer nie. Jonatan se boog het altyd raak geskiet. Ja, jy kon maar weet: wanneer hy en Saul hulle swaarde uittrek, dan loop die bloed! Saul en Jonatan, sy seun - die mense was baie lief vir hulle. Hulle was altyd bymekaar; nou is hulle ook saam in die dood. Hulle was so vinnig soos valke, so dapper soos leeus. Vroue van Israel, julle moet huil oor Saul, oor die man wat vir julle die mooiste klere en juwele gegee het. Die helde het geval toe die geveg op sy kwaaiste was. Op die berge van Israel lê Jonatan se lyk! Ek is so hartseer oor jou, my broer, my heel beste vriend. Jou vriendskap was vir my meer werd as al die vroue se liefde. Die helde het geval; hulle wapens is tot niet. Daarna het Dawid by die Here raad gevra: “Moet ek in een van die dorpe van Juda gaan bly?” Die Here het “Ja” geantwoord. Dawid vra toe: “In watter dorp moet ek gaan bly?” En die Here antwoord: “In Hebron.” Dawid het toe in Hebron gaan bly saam met sy twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel. Die manne wat by Dawid was, het elkeen ook met sy familie daarheen getrek en in die klein dorpies om Hebron gaan bly. Die mense van Juda het na Hebron toe gekom en Dawid daar koning gemaak. Hy was net die koning van Juda. Die mense het vir Dawid kom vertel dat die mans van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het. Hy het toe van sy manne na Jabes gestuur met die boodskap: “Die Here sal vir julle goed wees omdat julle so goed was vir Saul, julle koning, en hom begrawe het. Die Here sal vir julle goed wees en julle onthou. Ek waardeer regtig wat julle gedoen het. Noudat julle koning dood is, moet julle sterk en dapper wees. Ek wil hê julle moet weet die mense van Juda het my koning gemaak oor hulle.” Saul se generaal, Abner, die seun van Ner, het oor die Jordaanrivier na Maganajim toe getrek. Hy het Is-Boset, Saul se seun, saamgevat en hom koning gemaak oor die hele Israel. Is-Boset het met ander woorde regeer oor die streke Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning geword het oor Israel en hy het twee jaar regeer. Dawid was net koning oor die mense van Juda en hy het sewe jaar en ses maande in Hebron regeer. Abner, die seun van Ner, het met Is-Boset se manskappe van Maganajim af na Gibeon toe gegaan. Joab, die seun van Seruja, en Dawid se manskappe het ook uitgetrek en hulle by Gibeonsfontein gekry. Die twee groepe het weerskante van die poel water gaan sit. Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.” “Dis goed so,” sê Joab. Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg. Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.) Daar het toe ’n woeste geveg uitgebreek. Abner en die manne van Israel het die slegste daarvan afgekom teen Dawid se manskappe. Al drie Seruja se seuns, Joab, Abisai en Asael, was in die geveg. Asael was so rats soos ’n ribbok. Toe Abner begin weghardloop, sit Asael hom agterna en bly op sy hakke, maak nie saak watter kant toe Abner draai nie. Abner kyk toe om en skree vir hom: “Is jý die een wat agter my aan is, Asael?” Asael skree terug: “Ja, dis ek!” Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!” Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie. Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar Asael wou nie hoor nie. Toe steek Abner hom so hard met die spies in sy maag dat die steel by sy rug uitkom. Asael het net daar dood neergeslaan. Almal wat verbygehardloop het, het gaan staan daar waar Asael dood gelê het. Maar Joab en Abisai het op Abner se spoor gebly. Toe die son sak, kom hulle by Ammabult aan wat oos van Giag op pad na Gibeon se weivelde lê. Die manne van Benjamin het by Abner saamgekom en in ’n digte bondel op een van die koppies gaan staan. Toe skree Abner: “Joab! Moet ons dan vir altyd aanhou veg? Jy weet goed waar dit gaan eindig: almal gaan bitter kwaad en ongelukkig wees! Hoekom sê jy nie vir jou manne hulle moet ophou om hulle eie mense te jaag en dood te maak nie?” Toe skree Joab terug: “So waar as God leef, as jy net vroeër gepraat het, het ons vanmôre al opgehou om mekaar aan te val!” Joab het op ’n ramshoring geblaas. Die manne het gaan staan en opgehou om die Israeliete te jaag. Die geveg het daar opgehou. Abner en sy manne het daardie hele nag getrek. Hulle is deur die Jordaanvallei en oor die rivier. Hulle het eers laat die volgende môre by Maganajim aangekom. Nadat Joab opgehou het om Abner te jaag, het hy die manskappe almal bymekaargeroep. Die negentien man en Asael was al wat makeer het van Dawid se soldate. Maar Dawid se soldate het 360 van die mense van Benjamin doodgemaak wat saam met Joab was. Hulle het Asael se lyk gevat en hom in sy familiegraf by Betlehem gaan begrawe. Daarna het Joab en sy manne dwarsdeur die nag getrek en die volgende môre toe dit lig word, in Hebron aangekom. Die gevegte tussen Saul se mense en Dawid se mense het lank aangehou, maar Dawid se mense het naderhand begin wen. Hier is die name van die ses seuns van Dawid wat in Hebron gebore is: Amnon was die oudste; sy ma was Aginoam van Jisreël. Die tweede oudste was Kilab; sy ma was Abigajil, Nabal se weduwee van Karmel. Absalom was die derde oudste; sy ma was Maäka, ’n dogter van koning Talmai van Gesur. Adonia was die vierde. Hy was Gaggit se seun. Die vyfde seun was Sefatja, Abital se kind; en die jongste was Jitream; sy ma was Egla, nog ’n vrou van Dawid. Dit is Dawid se seuns wat in Hebron gebore is. Toe die gevegte tussen Saul se mense en Dawid se mense aanhou, het Abner al hoe belangriker geword in die regering van Saul se seun. Saul het ’n vrou in sy harem gehad met die naam Rispa. Sy was ’n dogter van Aja. Op ’n dag vra Is-Boset vir Abner: “Hoekom het jy by Rispa, een van my pa se haremvroue, geslaap?” Hieroor het Abner hom bloedig vererg. Hy sê toe vir Is-Boset: “Dink jy miskien ek is ’n skelm hond wat jou koningskap wil afneem omdat ek aan Juda se kant is? Ek was nog altyd getrou aan Saul, jou pa, se regering, aan sy familie en aan sy vriende. Ek het ook gekeer dat Dawid jou in die hande kry. En nou kom beskuldig jy my dat ek met hierdie vrou gelol het! [9-10] God kan my maar baie swaar straf as ek nie doen wat ek nou vir jou gaan sê nie: Ék sal sorg dat die koningskap van Saul se familie af weggevat en aan Dawid gegee word soos die Here hom belowe het. Dan sal hy koning wees oor die hele Israel en Juda, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide.” *** Is-Boset was so bang vir Abner, hy het nie ’n woord gesê nie. Abner het mense na Dawid gestuur om vir hom te gaan sê: “Eintlik behoort die land aan jou. As jy met my ’n ooreenkoms maak, sal ek sorg dat al die Israeliete jou kant kies.” Dawid se antwoord was: “Dis goed so, ek sal ’n ooreenkoms met jou maak; maar op een voorwaarde: jy kom nie hier by my aan sonder Mikal, Saul se dogter, nie.” Dawid stuur toe ook ’n boodskap vir Is-Boset, Saul se seun: “Gee my vrou Mikal vir my terug. Sy is my wettige vrou; ek het vir haar met die voorhuide van 100 Filistyne betaal.” Is-Boset het haar laat haal by Paltiël, die seun van Lajis. Haar man wou haar nie laat gaan nie. Hy het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe Abner vir hom sê: “Gaan terug!” het hy maar omgedraai. Abner het intussen met die leiers van Israel gepraat en vir hulle gesê: “Dis mos nou al ’n hele ruk wat julle graag wil hê Dawid moet julle koning wees. Dis nóú julle kans! Onthou, die Here het gesê Hy gaan Dawid gebruik om sy volk, die Israeliete, vry te maak van die Filistyne en van al hulle ander vyande.” Abner het ook self met die mense van die Benjaminstam gaan praat. Daarna het hy Hebron toe gegaan om self vir Dawid te sê dat die Israeliete en al die mense van die Benjaminstam tevrede was met die reëling. Abner het in Hebron by Dawid aangekom met twintig manne saam met hom. Dawid het vir hom en sy manne ’n groot ete reggemaak. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.” Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen. Joab is dadelik na die koning toe. “Wat het jy nou aangevang?” vra hy vir Dawid. “Abner kom hier na jou toe en jy laat hom sowaar gaan sonder om enigiets aan hom te doen! Jy ken tog vir Abner, daardie seun van Ner! Hy het jou lekker om die bos gelei: hy het net hiernatoe gekom om uit te vind wat jou planne is en wat jy doen.” Joab het van Dawid af weggegaan en, sonder dat Dawid dit weet, manne agter Abner aangestuur om hom terug te roep. Hulle het Abner by Doringputs ingehaal en hom teruggebring. Toe hy in Hebron kom, het Joab hom eenkant toe in die poort van die dorp gevat om kamma vertroulik met hom te praat. Maar net daar het Joab hom met ’n mes in die maag gesteek. Hy is op die plek dood. Joab het dit gedoen om sy broer Asael se dood te wreek. Dawid het agterna eers gehoor wat gebeur het. Hy het gesê: “Die Here is my getuie dat ek en my regering nooit verantwoordelik gehou kan word vir die moord op Abner, Ner se seun, nie. Joab en sy hele familie sal daarvoor betaal: daar sal altyd van sy familielede wees wat vuilsiekte of ’n velsiekte het, of wat met krukke loop of doodgesteek word of honger ly.” ( Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.) Daarna sê Dawid vir Joab en al die mense by hom: “Skeur julle klere en bind swart bokhaardoeke om julle lywe en loop in die stoet voor Abner se lyk.” Koning Dawid het self reg agter die draagbaar geloop. Hulle het Abner in Hebron begrawe. Dawid het kliphard by die graf gehuil. Almal het saamgehuil. Die koning het dié klaaglied vir Abner gesing: Abner, waarom moes jy doodgemaak word? Asof jy niks werd is, is jou hande nie geboei, jou voete nie vasgemaak nie; is jy dood soos iemand wat deur straatboewe aangeval is. Toe die mense die lied hoor, het hulle nog meer gehuil oor Abner. Die mense het Dawid probeer ompraat om daardie dag iets te eet, maar Dawid het voor God gesweer hy sal nie sy mond aan iets sit voor die dag om is nie. Al die mense het daarvan te hore gekom en dit waardeer. Om die waarheid te sê, hulle was gelukkig met alles wat die koning gedoen het. Almal by die begrafnis, ja, al die mense in die land het daardie dag besef die koning het niks te doen gehad met Abner se moord nie. Ná die tyd het Dawid vir sy amptenare gesê: “Julle weet natuurlik ’n groot leier van Israel is vandag dood. Ek is nou wel die koning, maar ek kan nog niks doen aan hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is nog te sterk vir my. Maar die Here sal sorg dat die een wat hierdie verkeerde ding gedoen het, sy verdiende loon kry.” Toe Saul se seun Is-Boset hoor dat Abner in Hebron dood is, het sy moed in sy skoene gesak. Al die Israeliete was lam geskrik. Daar was twee mans by Is-Boset wat altyd die strooptogte gelei het. Die een se naam was Baäna en die ander een se naam was Rekab. Hulle pa was Rimmon, ’n man van Benjamin wat van Beërot af gekom het. (Beërot het vroeër aan die Benjaminstam behoort. Die mense wat eers in Beërot gebly het, het na Gittajim gevlug. Hulle is vandag nog daar en het die regte van vreemdelinge.) Behalwe Is-Boset was daar nog een man van Saul se familie oor. Sy naam was Mefiboset. Dit was Jonatan se seun. Sy bene was verlam. Toe die boodskap uit Jisreël kom dat Saul en Jonatan dood is, was hy maar vyf jaar oud. Die kinderoppasser het hom gegryp om weg te hardloop, maar sy was só haastig om weg te kom dat sy die kind laat val het. Van toe af is hy verlam. Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, het een middag na Is-Boset se huis gegaan. Dit was op die warmste tyd van die dag, en hy het ’n middagslapie geniet. Die twee het gemaak of hulle koring kom haal en het só tot binne-in die huis gekom. Hulle het Is-Boset doodgesteek en weer uitgeglip. Toe hulle in die huis ingekom het, het Is-Boset nog op sy bed in die slaapkamer gelê. Daar het hulle hom doodgesteek en sy kop afgekap. Hulle het sy kop gevat en die hele nag al met die Jordaanvallei langs geloop. Hulle het Is-Boset se kop vir koning Dawid in Hebron gevat en vir hom gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, daardie vyand van u wat probeer het om u dood te maak. Die Here het vandag vir U Majesteit wraak geneem op Saul en sy kinders.” Maar Dawid het vir Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, gesê: “So waar as die Here leef, Hy wat my uit baie moeilikheid gehelp het: Toe ’n man in Siklag vir my kom sê het Saul is dood, het hý ook gedink hy bring vir my goeie nuus. Maar ek het hom laat vang en laat doodmaak. Dís die betaling wat hy gekry het vir sy boodskap. Wat dink julle gaan ek dan doen met skurke wat ’n onskuldige man in sy eie huis op sy bed vermoor? Ek gaan julle vir seker laat betaal vir sy dood en julle van die aarde af uitroei.” Dawid het vir sy soldate gesê om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgekap en die twee lyke by die fontein van Hebron opgehang vir almal om te sien. Is-Boset se kop het hulle in Abner se graf in Hebron gaan neersit. Al die stamme van Israel se leiers het na Dawid in Hebron gekom. Hulle het vir hom gesê: “Ons is eintlik mos maar familie van u. Vroeër toe Saul nog ons koning was, was ú die een wat Israel altyd in die oorlog gelei het. Die Here het ook vir u gesê: Jý moet my volk Israel se herder wees. Jý moet die leier van Israel wees.” So het al die stamhoofde van Israel na die koning in Hebron gekom. Dawid het by die Here se altaar ’n ooreenkoms met hulle gesluit en hulle het hom koning gemaak oor Israel. Dawid was 30 toe hy koning geword het en hy het vir 40 jaar regeer. Oor Juda alleen het hy vir sewe en ’n half jaar in Hebron regeer en oor die hele Israel en Juda saam was hy vir 33 jaar koning in Jerusalem. Die koning het met sy manne na Jerusalem opgetrek om teen die Jebusiete, die mense van daardie gebied, te veg. Die Jebusiete het vir Dawid geskree: “Jy sal nooit in hierdie plek inkom nie! Ag man, die mense wat blind en kruppel is, sal sorg dat jy hier uitbly!” Só seker was hulle dat Dawid nie die plek sal kan inneem nie. En tog het Dawid die veilige plek met die muur om op Sionberg ingeneem. Dis later die Stad van Dawid genoem. Dawid het daardie dag nog gesê: “Iemand wat die Jebusiete wil wen, moet hulle deur die watertonnel bykom.” Dawid het die woorde oor “dié wat kruppel en blind is” verpes. Dis waarom die mense later ’n spreekwoord daarvan gemaak het wat sê: “Iemand of iets wat blind of kruppel is, moet uit die tempel uitbly.” Dawid het in die veilige plek met die muur om gaan woon. Hy het dit die Stad van Dawid genoem. Hy het daar rondom laat bou, van die keerwal af binnetoe. Dawid het sterker en sterker geword, want die magtige Here het hom gehelp. Hiram, die koning van Tirus, het belangrike mense gestuur om met Dawid ’n ooreenkoms te maak. Hy het daarna vir hom sederhout gestuur en mense wat met hout kan werk en met klip kan bou. Hulle het vir Dawid ’n paleis gebou. Dawid het besef dat die Here hom koning gemaak het oor Israel en dat sy koninkryk belangrik geword het omdat die Here vir sy volk Israel omgee. Nadat Dawid van Hebron af getrek het, het hy in Jerusalem met nog vroue getrou en ook nog meer haremvroue gekry. Hy het toe nog meer seuns en dogters gehad. Die name van sy seuns wat in Jerusalem gebore is, was Sima, Sobab, Natan, Salomo, Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia, Elisama, Eljada en Elifelet. Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het van Israel. Hulle het toe met al hulle soldate gekom om hom in die hande te kry. Maar Dawid het gehoor wat hulle plan was en hy het in die veilige plek in Jerusalem gebly. Die Filistyne het hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan. Dawid het toe vir die Here gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg, en sal U my help om hulle te wen?” Die Here se antwoord was: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal vir seker sorg dat jy hulle wen.” Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar gewen. Hy het gesê: “Die Here het deur my vyande gebreek soos water deur ’n damwal breek.” Daarom het hy die plek Baäl-Perasim, “die Baas van die deurbrekers”, genoem. Die Filistyne het hulle afgodsbeelde net daar laat lê, en Dawid en sy manne het dit vir hulle gevat. Die Filistyne het daarna nog ’n keer probeer en weer hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan. Dawid het weer vir die Here gevra wat hy moet doen. Die Here het vir hom gesê: “Moenie hulle van voor af aanval nie. Gaan óm hulle en val hulle daar by die melkbosse van agter af aan. As jy ’n geluid in die boomtoppe hoor wat soos voetstappe klink, moet jy vinnig aanval, want dan is Ek, die Here, voor jou om die soldate van die Filistyne te verslaan.” Dawid het alles gedoen net soos die Here vir hom gesê het. Hy het die Filistyne gejaag van Geba af tot waar ’n mens by Geser kom. Dawid het op ’n keer al die beste manne in Israel bymekaar laat kom. Daar was 30 afdelings. Hy het saam met al hierdie manne na Baäla toe gegaan. Baäla is in Juda. Hulle het die ark van God daar gaan haal. Dis daardie beroemde ark, die een wat die troon van die magtige Here is. Die Here sit mos op die gerubs wat op die ark se deksel is. Hulle het die ark van God uit die huis van Abinadab op die bult gedra en dit op ’n nuwe wa gelaai. Ussa en Agjo, twee kleinseuns van Abinadab, het saam met die nuwe wa geloop. Agjo het voor geloop. So het hulle die ark van God by Abinadab se huis gaan haal. Dawid en al die leiers van Israel het gedans en vir die Here op liere en harpe gespeel wat van sipreshout gemaak is, en op tamboeryne en ratels en simbale. Toe hulle by die klipplaat kom waar Nakon sy koring dors, het Ussa die ark van God vasgehou en gekeer dat dit nie van die wa afval nie, want die osse het los geraak voor die wa. Die Here het so kwaad geword vir Ussa oor hy so astrant was, dat Hy hom net daar doodgemaak het. Ussa het dood neergeslaan langs die ark van God. Dawid was baie ongelukkig oor die Here vir Ussa so gebreek het. Hy het die plek toe Peres-Ussa, “Ussa se breek”, genoem. Dis vandag nog die plek se naam. Dawid het ook bang geword vir die Here en gedink: “Hoe kan ek ooit die ark van die Here na my plek toe vat?” Hy wou toe nie meer die ark van die Here in die Stad van Dawid hê nie. Dawid het die wa laat wegdraai na Obed-Edom se huis toe, ’n man wat van Gat af gekom het. Die ark van die Here het vir drie maande in Obed-Edom se huis gestaan. Die Here was baie goed vir Obed-Edom en sy hele familie. Die mense het vir koning Dawid gaan vertel dat die Here goed is vir Obed-Edom se familie en dat dit so goed gaan met alles wat hy het omdat die ark van God by hom is. Dawid het toe die ark van God by Obed-Edom se huis laat haal. Dit was ’n vrolike optog: toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ’n bul en ’n vet kalf vir die Here geslag. Daarna het hy gedans so al wat hy kon. Hy het net ’n priesterrokkie aangehad. So het Dawid en al die leiers van Israel die ark van die Here Jerusalem toe gevat. Hulle was bly en het geskree en op ramshorings geblaas. Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor. Hulle het die ark ingevat en dit op ’n spesiale plek neergesit in ’n tent wat Dawid laat opslaan het. Dawid het daar by die tent offers verbrand en diere geslag vir die heilige ete. Nadat die mense geëet het, het Dawid hulle in die Naam van die magtige Here voorspoed toegewens. Hy het vir elke Israeliet wat daar was, mans en vroue, ’n ringbroodjie en ’n hand vol dadels en rosyntjies gegee. Almal is daarna huis toe. Toe Dawid ook huis toe gaan om sy eie familie voorspoed toe te wens, het Mikal, Saul se dogter, uitgekom en ewe sarkasties gesê: “Ag, en het die koning van Israel nie vandag vir hom naam gemaak nie! Die meisies wat vir sy amptenare werk, het alles gesien! Hy was net soos ’n skorriemorrie wat sy klere voor meisies uittrek!” Dawid het vir haar gesê: “Hoor hier, ek het vir die Here gedans omdat Hy my bo jou pa gekies het en bo enigiemand in jou pa se familie. Ek het gedans omdat die Here my die leier van sy volk, van Israel, gemaak het. Maar weet jy, ek sal nóg laer gaan as wat ek vandag gegaan het: ek sal afgaan tot by dié meisies van wie jy gepraat het. Húlle sal van my hou.” Mikal, Saul se dogter, het nooit ’n kind gehad nie. Dawid het lekker in sy paleis gebly. Niemand het hom gepla nie, want die Here het al die vyande in die lande om hom op hulle plek gehou. Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.” Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.” Maar daardie nag het die Here met Natan gepraat: “Gaan sê vir Dawid Ek het gesê: ‘Jy wil vir My ’n huis bou om in te bly; maar Ek het nog nooit in ’n huis gebly nie, van daardie tyd af wat Ek die Israeliete laat wegtrek het uit Egipte tot nou toe. Oral waar Ek gegaan het, was my woonplek ’n tent. Ek het nooit, op enige plek waar Ek by die Israeliete was, iets oor ’n huis gesê nie. Ek het nooit vir enige van die leiers wat Ek aangestel het om vir my volk Israel te sorg, gevra hoekom bou hulle nie vir My ’n huis met duur hout nie.’ “Daarom moet jy nou vir my getroue werker, vir Dawid, gaan sê wat Ek, die magtige Here, sê. Sê vir hom: ‘Ek self het jou agter die skape gaan haal om ’n leier vir my mense, die Israeliete, te wees. Ek het jou gehelp oral waar jy gegaan het. Ek het al jou vyande voor jou weggevee en Ek het jou een van die beroemdste mense op aarde gemaak. Ek het vir my volk, vir Israel, ’n plek gegee waar hulle altyd kan bly. Niemand pla hulle meer nie, en daar is nie meer slegte mense wat hulle laat swaarkry soos vroeër in die tyd toe Ek regters oor my volk aangestel het nie. Jou vyande pla jou ook nie meer nie. “‘Ek, die Here, sê nou vir jou dat Ek vir jóú ’n huis gaan bou, ’n koningshuis. Wanneer jy die dag doodgaan en begrawe word, sal Ek sorg dat jou eie seun koning word en Ek sal sorg dat hy lank koning bly. Hý sal vir My ’n huis bou waarin Ek self sal wees. En Ek sal sorg dat iemand van sy nageslag altyd koning is. Ek sal vir hom soos ’n pa wees en hy sal vir My soos ’n seun wees. As hy ’n fout maak, sal Ek hom straf soos ’n pa sy seun straf. Maar Ek sal nie my rug vir hom draai soos Ek dit met Saul gedoen het en jou toe in sy plek gesit het nie. Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’” Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê. Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het? Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here? Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel! U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker. “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het. U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God. “Nou vra ek, Here my God, dat U asseblief die belofte wat U gemaak het vir hierdie werker van U en vir sy familie, vir altyd waar sal maak; ja, dat U sal doen wat U gesê het U gaan doen. Mense sal dan altyd met groot respek van U praat en sê: ‘Die magtige Here is Israel se God.’ “En laat die koningshuis van Dawid u werker asseblief nie tot niet gaan nie. Magtige Here, God van Israel, U het tog self vir my gesê dat U vir my ’n huis sal bou. Dit is hoekom ek die moed gehad het om te bid soos ek gebid het. Groot Here, U alleen is God. U woorde word waar; ook hierdie mooi woorde wat U vir my gesê het. Maak dan nou asseblief my koningshuis voorspoedig. Gee tog dat my nageslag altyd naby U sal wees. Groot Here, U het ’n belofte gemaak en as U ons help, sal dit altyd met ons goed gaan.” Dawid het daarna die Filistyne gewen in die oorlog. Hy was hulle baas en hulle kon nie meer doen wat hulle wou nie. Dawid het ook die Moabiete gewen. Hy het hulle in rye op die grond laat lê. Hy het toe ’n meetlyn gevat en die rye gemeet. Die eerste en tweede groep onder die meetlyn is elke keer doodgemaak en die derde groep onder die meetlyn is gespaar. Die Moabiete wat oorgebly het, moes vir Dawid werk en aan hom belasting betaal. Dawid het Hadad-Eser, die koning van Soba, ook in ’n geveg gewen. Hadad-Eser was op pad om die grond wat hy langs die Eufraatrivier verloor het, te probeer terugkry. Hy was Regob se seun. Dawid het 20 000 van sy gewone soldate gevang en 1 700 van sy strydwaens afgevat. Hy het die hakskeensenings van die perde wat die strydwaens trek, laat afkap. Net 100 spanne van die perde het hy uitgehou. Die Arameërs het van Damaskus af gekom om vir Hadad-Eser te help, maar Dawid het 22 000 van hulle soldate in die gevegte doodgemaak. Hy het van sy eie soldate oral in die land van die Arameërs van Damaskus laat bly. Die Arameërs moes vir Dawid werk en aan hom belasting betaal. Dis die Here wat Dawid al hierdie oorloë laat wen het. Dawid het die goue pylkokers van Hadad-Eser se lyfwag gevat en dit Jerusalem toe gebring. Hy het ook baie brons saamgebring van Betag en Berotaj af, twee dorpe van Hadad-Eser. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid teen die hele leër van Hadad-Eser gewen het, het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur om hom te groet en hom geluk te wens dat hy Hadad-Eser gewen het, want Hadad-Eser het gedurig teen Toï oorlog gemaak. Joram het vir Dawid geskenke van silwer, goud en brons saamgevat. Koning Dawid het hierdie geskenke spesiaal vir die Here gebêre, net soos hy gemaak het met die goue en silwer goed wat hy gevat het by die mense wat hy in sy oorloë gewen het. Dit was die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne, die Amalekiete en dan natuurlik ook die koning van Soba, Hadad-Eser, Regob se seun. Toe Dawid terugkom van al die gevegte af, het hy ook 18 000 Edomiete in die Soutvlakte in ’n geveg gewen. Dit het hom nog meer beroemd gemaak. Hy het ook van sy soldate in Edom laat bly. Al die Edomiete moes vir hom werk. Dit was die Here wat Dawid al sy oorloë laat wen het. Nadat Dawid koning oor die hele Israel geword het, was hy vir al sy mense ’n goeie regter wanneer daar hofsake was. Joab, Seruja se seun, was die belangrikste generaal en Josafat, Agilud se seun, was die sekretaris van die regering. Sadok, Agitub se seun, en Agimelek, Abjatar se seun, was die twee belangrikste priesters. Seraja moes alles vir die regering opskryf. Benaja, Jojada se seun, was aangestel oor die lyfwagte van Dawid. Dawid se eie seuns was ook priesters. Dawid het vir die mense gevra: “Is daar miskien nog iemand van Saul se familie oor? Ek wil graag goeddoen aan so iemand omdat ek en Jonatan sulke goeie vriende was.” Daar was nog ’n man met die naam Siba wat vir Saul in die paleis gewerk het. Die mense het hom na Dawid gebring. “Is jy Siba?” vra die koning vir hom. Siba antwoord: “Ek is tot u diens.” Die koning sê toe: “Is daar dalk nog iemand van Saul se familie oor? Ek sal graag goed wil wees vir so iemand, soos God vir my goed was.” Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog ’n seun van Jonatan, maar hy loop swaar.” Die koning vra: “Waar is hy?” “Hy bly daar in Lo-Dabar,” sê Siba, “by Makir, Ammiël se seun.” Koning Dawid het mense na Lo-Dabar toe gestuur en hom by Makir se huis laat haal. Toe Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, by Dawid kom, het hy met sy gesig teen die grond gebuig. Dawid vra hom: “Is jy Mefiboset?” “Ja, dis ek. Ek is tot u diens,” antwoord hy. Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie. Ek sal vir jou net goed wees omdat ek en jou pa, Jonatan, sulke goeie vriende was. Ek gaan al jou oupa Saul se grond vir jou teruggee, en jy kan altyd by my kom eet.” Hy het weer teen die grond gebuig en gesê: “U Majesteit, ek weet nie hoekom u dit vir my doen nie, want ek is niks meer werd as ’n dooie hond nie.” Dawid het toe vir Siba, die man wat vir Saul gewerk het, gesê: “Siba, ek gee nou al die grond en goed van Saul, jou vorige baas, en van sy familie vir hierdie kleinkind van hom. Jy en jou seuns en jou werkers moet die grond vir hom bewerk en vir hom oes sodat daar vir hom genoeg is om van te lewe. Mefiboset self kan altyd by my eet.” (Siba het vyftien seuns en twintig werkers gehad.) Siba sê toe vir die koning: “U Majesteit, ek sal alles doen wat u vir my gesê het.” Mefiboset het toe soos een van die koning se eie seuns gereeld in die paleis geëet. Mefiboset het ’n klein seuntjie gehad; sy naam was Miga. Al Siba se mense het vir Mefiboset gewerk, maar Mefiboset, wie se twee bene lam was, het in Jerusalem gebly sodat hy gereeld by die koning kon eet. ’n Ruk daarna is die koning van die Ammoniete dood. Sy seun Ganun het in sy plek koning geword. Dawid het gedink: “Ek sal vriendelik wees met Nagas se seun Ganun, want sy pa was altyd vriendelik met my.” Dawid stuur toe van sy amptenare om vir Ganun te sê hy is jammer oor sy pa se dood. Maar toe Dawid se mense in die land van die Ammoniete aankom, sê die leiers van die Ammoniete vir Ganun, hulle nuwe koning: “Dink u regtig Dawid het soveel respek gehad vir u pa dat hy sy mense sal stuur om te kom sê hy is jammer oor sy dood? Het hy nie maar net sy mense gestuur om hier in die stad te kom rondsnuffel en alles mooi deur te kyk sodat hulle dit later kan verwoes nie?” Ganun het toe die amptenare van Dawid gevat en die een kant van hulle baarde afgeknip. Hy het ook hulle klere bokant die sitvlak afgesny en hulle so teruggestuur. Toe Dawid hoor wat gebeur het, het hy mense gestuur om hulle voor te keer en vir hulle te sê om vir eers in Jerigo te bly tot hulle baarde weer uitgegroei het, want die mans was verskriklik skaam. Die Ammoniete het geweet Dawid is baie kwaad vir hulle. Daarom het hulle mense gestuur om vir hulle soldate te huur. Hulle het 20 000 Aramese soldate by die regerings van Regob en Soba gekry. Hulle het ook by die koning van Maäka 1 000 manskappe en by Is-Tob nog 12 000 gehuur. Dawid het dit gehoor en vir Joab met al sy beste soldate gestuur om teen hulle te veg. Die Ammoniete se soldate het reggestaan voor die ingang na hulle hoofstad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Is-Tob en Maäka was eenkant in die oop veld. Joab het gesien hulle gaan hom van voor en van agter af aanval. Daarom het hy die heel beste soldate in Israel laat regstaan om teen die Arameërs te veg. Die ander soldate het hy vir sy broer Abisai gegee sodat hulle teen die Ammoniete kon veg. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, sal ek jou gaan help. Maar julle moet moed hou! Ons moet dapper veg vir ons mense en vir die dorpe van ons God. Die Here sal besluit wie hier gaan wen.” Joab het met die manne wat by hom was, die Arameërs aangeval, maar hulle het vir hom weggehardloop. Toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook vir Abisai padgegee en in hulle stad ingegaan. Joab het toe nie verder geveg teen die Ammoniete nie en teruggegaan Jerusalem toe. Toe die Arameërs sien dat hulle teen die Israeliete verloor het, het hulle al die soldate wat hulle het, bymekaargemaak. Hadad-Eser het ook die soldate wat oorkant die Eufraat was, laat kom. Die hele leër van die Arameërs het na Gelam toe getrek. Sobak, Hadad-Eser se groot generaal, was die leier. Toe Dawid dit hoor, het hy al die Israeliete wat kon veg, bymekaar laat kom en deur die Jordaanrivier na Gelam toe getrek. Die Arameërs was reg vir Dawid en het teen hom begin veg. Maar hulle moes weer vir die Israeliete vlug. Dawid het 700 van die Arameërs se perde wat strydwaens trek, doodgemaak en ook 40 000 van die soldate wat op die strydwaens ry. Sobak, die groot generaal, is ook in die geveg dood. Toe die kleiner konings wat vir Hadad-Eser in die oorlog moes help, sien dat hulle teen Israel verloor het, het hulle met die Israeliete vrede gemaak en vir hulle gewerk. Die Arameërs van Hadad-Eser was daarna te bang om die Ammoniete weer te help. Die volgende lente, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid sy eie soldate saam met Joab en al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete kafgeloop en hulle in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer. Dawid was nie by nie; hy het in Jerusalem agtergebly. Laat een middag, net na sy middagslapie, het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Dit was ’n baie mooi vrou. Dawid het iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is. Die man kom sê toe vir hom: “Dit is Eliam se dogter Batseba; sy is getroud met Urija, ’n Hetiet.” Dawid het mense gestuur om haar te gaan haal, en toe sy by hom kom, het hy by haar geslaap. (Sy het haar juis gewas na haar menstruasie.) Na die tyd is sy weer terug huis toe. Die vrou het toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.” Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija, die Hetiet, na my toe.” Joab het Urija na Dawid toe gestuur. Toe hy by Dawid kom, vra Dawid vir hom hoe dit met Joab en die manskappe gaan en of dit goed gaan met die oorlog. Daarna sê Dawid vir hom: “Gaan nou na jou huis toe, dan ontspan jy lekker.” Net na Urija uit die paleis is, het die koning vir hom ’n groot ete gestuur. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie. Hy het by die koning se wagte by die paleis se deur gaan slaap. Dawid het gehoor Urija het nie by sy huis gaan slaap nie. “Jy was dan so lank weg, hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” vra Dawid hom die volgende môre. Urija het geantwoord: “Hoe kan ek huis toe gaan om te gaan eet en drink en by my vrou te slaap as die ark van God en al die manne van Israel en Juda in tente bly, en Joab en die koning se eie soldate in die oop veld moet kamp? Ek sal dit so waar as u leef, nooit doen nie!” “Bly nog vandag en môre hier, dan sal ek jou terugstuur,” het Dawid vir hom gesê. Urija het toe vir nog twee dae in Jerusalem gebly. Dawid het hom uitgenooi om saam met hom te kom eet en drink en hom toe dronk gemaak. Daardie aand het Urija weer op dieselfde plek by die wagte van die koning gaan slaap. Hy wou glad nie huis toe gaan nie. Die volgende môre het Dawid vir Joab ’n brief geskryf wat hy saam met Urija gestuur het. In die brief het daar gestaan: “Sit vir Urija heel voor in die kwaaiste geveg. Los hom dan alleen sodat hulle hom kan bykom en hom doodmaak.” Joab het geweet waar die dapperste manne van die stad was. In die geveg om in die stad in te kom het hy toe vir Urija op daardie plek gesit. Die soldate van die stad het uitgekom om teen Joab te veg. Van Dawid se soldate is in die geveg dood. Urija, die Hetiet, was een van hulle. Joab het vir Dawid laat weet hoe dit gaan met die oorlog. Hy het vir die man wat die boodskap na Dawid moes neem, mooi gesê: “As jy vir die koning alles klaar vertel het van die geveg, sal hy dalk kwaad word en vir jou sê: ‘Maar hoekom het julle so naby die muur van die stad geveg? Het julle nie geweet hulle gaan julle bo van die muur af met goed bestook nie? Het julle vergeet wat met Abimelek, Jerubbeset se seun, by Tebes gebeur het? ’n Vrou het hom dan met ’n maalklip bo van die muur af doodgegooi! Hoekom het julle so naby die muur gekom?’ Dan moet jy maar net vir die koning sê: ‘Daardie soldaat van u, Urija, die Hetiet, is ook dood.’” Die man het na Dawid toe gegaan en alles oorvertel wat Joab gesê het. Hy het gesê: “Die manne van die stad was sterker as ons. Hulle het na ons toe uitgekom in die veld. Ons het hulle tot by die hekke van die stad teruggedryf, maar toe skiet hulle op ons bo van die muur af met pyl en boog. Van U Majesteit se soldate is daar dood. Urija, die Hetiet, is ook dood.” Dawid het vir die man gesê: “Gaan sê vir Joab hy moenie sleg voel daaroor nie. Mense gaan maar dood in ’n oorlog. Sê vir hom hy moet nog harder probeer en die stad met die grond gelyk maak. Sê vir hom hy moet dapper wees!” Toe Urija se vrou hoor haar man is dood, het sy ’n week lank by die huis gebly om te rou. Na die week verby is, het Dawid haar na die paleis toe laat bring. Hy is met haar getroud en toe die baba gebore is, was dit ’n seun. Maar die Here het niks gehou van wat Dawid gedoen het nie. Die Here het Natan na Dawid toe gestuur. Toe hy by hom kom, sê hy vir hom: “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm. Die ryk man het baie skape en beeste gehad, en die arm man net een ou ooilammetjie wat hy gekoop het toe sy nog baie klein was. Hy het haar hans grootgemaak. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis. “Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Hy was te jammer om een van sy eie skape of beeste te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die ooilam van die arm man en maak haar gaar.” Dawid was briesend kwaad vir die man wat so iets kon doen. Hy sê vir Natan: “So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry! En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!” “Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul. Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee! Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete! Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’ “Die Here het vir jou nog ’n boodskap. Hy het gesê: ‘Ek sal sorg dat daar vir jou genoeg moeilikheid uit jou eie familie kom: jy sal sien hoe Ek jóú vroue vat en vir iemand gee wat naby jou is. Hy sal helder oordag by hulle slaap. Die ding wat jy skelm in die donker gedoen het, gaan Ek voor al die Israeliete helder oordag laat gebeur.’” Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!” Natan het geantwoord: “Die Here sal die fout wat jy gemaak het, oorsien: jy sal nie die doodstraf kry nie, maar die kind wat gebore is, sal vir seker doodgaan, want jy het die Here in die gesig gevat toe jy hierdie verskriklike ding gedoen het.” Nadat Natan daar weg is huis toe, het die Here die kind van Dawid en Urija se vrou laat siek word. Dawid het God mooi gevra om die kind te laat bly lewe. Hy het niks geëet nie en daardie nag in sy kamer op die grond gelê. Hy het rouklere aangetrek. Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie. ’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!” Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?” “Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord. Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet. Die paleiswerkers sê toe vir hom: “Hoe moet ons dit verstaan? Vir so lank as wat die kind geleef het, het u niks geëet nie en gehuil, maar nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?” Dawid het hulle geantwoord: “Toe die kind nog geleef het, het ek niks geëet nie en gehuil omdat ek gedink het miskien sal die Here my jammer kry en die kind laat leef. Maar nou is hy dood. Hoekom moet ek nog sonder kos bly? Ek kan nie die kind terugbring nie. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.” Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar geslaap en sy het toe weer ’n seuntjie gehad. Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het van Salomo gehou. Die Here het Natan gestuur om ook vir hom ’n naam te gee. Hy het hom Jedidja, “die Here se liefling”, genoem. Intussen het Joab weer Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Hy het met sy soldate tot binne-in die stad gekom. Joab stuur toe mense na Dawid toe om vir hom te sê: “Ek het teen Rabba geveg en die onderste deel van die stad waar die water is, oorgeneem. Kom dan nou met die manskappe wat nog oor is, dan kom veg u teen die stad en neem dit in. Ek wil dit nie doen nie, want dan kry ek die eer daarvoor.” Dawid het al die manne wat kon veg, bymekaargemaak en na Rabba toe opgetrek. Hy het teen die stad geveg en dit ingeneem. Dawid het die kroon gevat wat op hulle koning Milkom se kop was en dit op sy eie kop gesit. Dit was ’n goue kroon met juwele wat omtrent 34 kilogram geweeg het. Dawid het baie ander goed in die stad gekry. Hy het die mense van die stad vir hom laat werk: party van hulle moes met sae en ysterpikke en byle vir hom sandsteenblokke maak. Ander moes weer kleistene maak. Dawid het die mense van al die dorpe van die Ammoniete so laat werk. Daarna het hy met al die manskappe teruggegaan Jerusalem toe. Hierna het daar ’n lelike ding gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n suster gehad. Haar naam was Tamar. Sy was baie mooi en haar halfbroer Amnon was verlief op haar. Hy was skoon siek soos hy die hele dag oor Tamar, sy halfsuster, geloop en dink het. Hy kon nie naby haar kom nie, want sy was nog ’n jongmeisie wat eenkant moes bly. Amnon en sy neef Jonadab, Samma se seun, was maats. Jonadab het altyd slim planne gehad. Op ’n dag vra hy vir Amnon: “Hoekom lyk jy elke dag so moedeloos, prins? Wil jy nie maar vir my sê wat jou pla nie?” “Ek is verlief op Tamar, my halfbroer Absalom se suster,” sê Amnon. Jonadab gee hom toe hierdie raad: “Gaan lê op jou bed, dan maak jy of jy siek is. Jou pa sal kom kyk hoe dit gaan, dan sê jy vir hom jou suster Tamar moet na jou toe kom om vir jou die kos te maak wat ’n siek mens nodig het. Sê vir hom sy moet dit daar voor jou kom maak en jou dan voer.” Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, sê Amnon vir die koning: “Laat my suster Tamar asseblief kom en hier voor my twee hartbroodjies bak en my dan voer.” Dawid het Tamar laat haal uit die huis waar die jongmeisies bly en vir haar gesê: “Gaan na jou broer Amnon se huis toe en maak vir hom kos wat hom beter sal laat voel.” Tamar is toe na haar halfbroer se huis toe. Hy was nog in die bed. Sy het deeg gevat en dit geknie. Sy het hartbroodjies gemaak en dit gebak. Hy het haar die hele tyd dopgehou. Sy het die broodjies uit die bakpan gegooi en voor hom neergesit. Maar hy wou nie eet nie. Hy het gesê al die mans moet eers uit die kamer uitgaan. Toe almal uit die kamer is, sê hy vir Tamar: “Bring die broodjies na die agterste kamer, dan voer jy my daar.” Tamar het die hartbroodjies wat sy gebak het, vir Amnon in die agterste kamer gevat. Toe sy by hom kom om hom te voer, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my in die bed!” Maar sy het gesê: “Nee, my broer! Moenie my verkrag nie! Ons doen nie so iets in Israel nie! Moenie ’n dom ding doen nie! Wat moet van my word as ek so ’n skande oorkom? Dink aan jouself! Almal in Israel sal dink jy’s ’n skurk! Praat liewer met die koning; ek is seker hy sal my met jou laat trou.” Maar hy wou nie na haar luister nie. En omdat hy sterker was as sy, het hy haar vasgedruk en verkrag. Toe hy met haar klaar is, wou hy niks met haar te doen hê nie. So verlief as wat hy voor die tyd was, so min wou hy daarna met haar te doen hê. Hy het vir haar gesê: “Staan op! Gaan uit my huis uit!” “Nee!” sê sy vir hom. “As jy my nou wegjaag, doen jy nog ’n leliker ding as wat jy alreeds gedoen het.” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy roep toe sy kamerbediende en sê vir hom: “Smyt hierdie vrou uit my huis uit en sluit die deur!” Die bediende het haar uit die huis uitgesit en die deur agter haar toegesluit. Tamar het ’n lang rok met moue aangehad. Al die prinsesse wat nog jongmeisies was, het so aangetrek. Toe sy buite kom, het sy haar lang rok geskeur en grond op haar kop gegooi. Sy het met haar hande op haar kop daar weggeloop en die hele tyd hard geskree. Toe sy by haar broer Absalom kom, sê hy vir haar: “Daardie broer Amnon van jou het dit gedoen, nè? Toemaar, my ou sus! Moenie daaroor praat nie, hoor! Hy’s darem jou broer. Moenie jou te veel daaroor kwel nie.” Tamar het by haar broer Absalom ingetrek. Sy was ’n gebroke mens. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, was hy woedend. Absalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar verkrag het, maar hy het nie ’n woord met hom daaroor gepraat nie. Twee jaar later was die skeerders besig om Absalom se skape te skeer by Baäl-Gasor, naby die dorp Efraim. Hy wou al die koning se seuns daarheen nooi en het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “My mense is op die oomblik besig om my skape te skeer. Wil die koning en sy amptenare nie maar vir die fees na my toe oorkom nie?” “Nee, my seun,” sê die koning. “Ons kan nie almal na jou toe gaan nie. Ons sal te veel mense wees.” Absalom het by sy pa aangehou, maar Dawid wou nie saamgaan nie en het vir Absalom gesê hy hoop dit gaan goed met die skeerdery. “Kan my broer Amnon dan nie maar net saamgaan nie?” het Absalom gevra. “Maar hoekom moet hy saamgaan?” het die koning gevra. Absalom het só by hom aangehou dat die koning naderhand vir Amnon en al sy seuns saamgestuur het. Absalom het ’n groot fees gehou en vir sy manne gesê: “Julle moet wakker wees! As Amnon vrolik begin raak van die wyn en ek sê vir julle: ‘Steek hom dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle hoef nie bang te wees nie. Ek sal die skuld kry daarvoor. Wees julle net sterk en vasberade!” Absalom se manne het toe met Amnon gedoen wat hy vir hulle gesê het. Al die koning se seuns het van die tafel af opgespring, elkeen op sy muil gespring en weggejaag. Hulle was nog op pad, toe kom die nuus by Dawid aan dat Absalom al die koning se seuns vermoor het en dat nie een oorgebly het nie. Die koning het van sy stoel af opgespring en sy klere geskeur. Toe het hy op die grond gaan lê. Al sy amptenare het met geskeurde klere daar om hom gestaan. Jonadab, Dawid se broerskind, sê toe: “U Majesteit, u hoef nie bang te wees dat al die jongmans, al u seuns, dood is nie. Ek dink net Amnon is dood. Dit was Absalom se bedoeling van die dag af dat Amnon sy suster verkrag het. U Majesteit moet regtig nie die storie glo dat al u seuns dood is nie. Dis net Amnon wat dood is.” Absalom het natuurlik intussen gevlug. Die man wat by die paleis waggehou het, het skielik aan die westekant ’n klomp mense gesien wat teen die bult afkom. Jonadab sê toe vir die koning: “Daar kom die prinse! Sien u, dis net soos ek vir u gesê het!” Sy woorde was nog nie koud nie, toe kom die koning se seuns by die paleis aan. Hulle het sommer hardop begin huil. Die koning en al sy amptenare het ook sonder ophou gehuil dat die trane loop. Absalom het na Talmai, Ammigur se seun, toe gevlug. Talmai was die koning van Gesur. Dawid het baie lank oor sy seun Amnon gehuil. So het Absalom dan na Gesur toe gevlug. Hy het sowat drie jaar daar gebly. Dawid het ’n plan gehad om teen Absalom te gaan oorlog maak, want hy was nog bitter oor Amnon se dood. Joab, Seruja se seun, het agtergekom dat die koning nog steeds iets teen Absalom het. Joab laat haal toe ’n slim vrou uit Tekoa en sê vir haar: “Maak of een van jou mense dood is en trek rouklere aan. Moenie enige parfuum of grimering aansit nie. Dit moet lyk of jy al lank huil oor ’n familielid wat dood is. Gaan dan na die koning toe en sê vir hom só.” Hy sê toe vir haar presies wat sy moet sê. Die vrou van Tekoa is toegelaat om met die koning te praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en met haar gesig teen die grond gebuig. Sy het gesê: “Help my asseblief, my koning!” “Wat is verkeerd?” het die koning vir haar gevra. Sy het geantwoord: “My man is dood en ek is ’n arme weduwee. Ek het twee seuns gehad, U Majesteit. Eendag het hulle op die land stry gekry. Daar was niemand wat hulle uitmekaar kon maak nie en toe het die een die ander een so geslaan dat hy dood is. Nou is die hele familie teen my, U Majesteit. Hulle wil hê ek moet die een wat sy boetie doodgeslaan het, vir hulle gee sodat hulle hóm ook kan doodmaak. Hulle wil hê hy moet met sy lewe betaal vir sy broer se dood, al is hy die enigste erfgenaam. Hulle wil die laaste ou kooltjie vuur wat ek het, doodmaak. As dít gebeur, is daar niemand wat my oorlede man se naam kan laat voortleef of sy stukkie grond kan bewerk nie.” “Jy kan maar huis toe gaan,” het die koning vir haar gesê. “Ek sal sorg dat dit nie gebeur nie.” Maar die vrou van Tekoa sê vir hom: “U Majesteit, maar my skoonfamilie gaan my en my eie familie beskuldig. Hulle sal nie die vinger na u of u regering wys nie.” “As iemand iets daaroor te sê het, bring jy hom net na my toe. Ek verseker jou, hy sal jou nie weer pla nie,” sê die koning. “U Majesteit,” sê die vrou, “u moet asseblief voor die Here u God sweer dat u sal keer dat die een wat wraak wil neem my seun doodmaak en so nog meer moeilikheid veroorsaak.” Die koning sê toe vir haar: “Ek sweer voor die Here, hulle sal nie aan jou seun raak nie.” “Mag ek nog iets vir u sê, U Majesteit?” vra die vrou. “Ja, sê maar,” antwoord die koning. Toe sê die vrou: “Waarom het u dan ’n plan gehad om wraak te neem op iemand wat aan God se volk behoort? Toe U Majesteit nou net gesê het hulle mag nie wraak neem op my seun nie, het u uself eintlik skuldig verklaar. Mag u verlore seun dan nie terugkom nie? “Ons sal almal eendag doodgaan. ’n Mens kan iemand wat dood is nie weer terugbring nie. Dis soos wanneer ’n mens water op die grond uitgooi; jy kan dit nie weer terugkry nie. God vergewe nie sommer moord nie, maar Hy wil tog hê dat iemand wat ’n balling is, weer na Hom en sy volk moet terugkom. “Ek het dit gewaag om met my koning hieroor te kom praat. Omdat die mense my bang maak, het ek gedink: ‘Ek sal met die koning gaan praat. Miskien sal hy doen wat hierdie nederige vrou vir hom vra. Miskien sal die koning luister en hierdie vrou help teen die man wat my en my seun saam wil afkry van die grond af wat God vir ons gegee het.’ “Ek het ook gedink: ‘Die uitspraak wat my koning gaan gee, sal die saak oplos, want my koning is soos ’n engel uit die hemel wanneer hy ’n saak moet beoordeel.’ “Dis al wat ek wou sê. Mag die Here u God u help.” Die koning sê toe vir die vrou: “Ek wil vir jou iets vra, maar jy moet my baie eerlik antwoord.” “Vra maar, U Majesteit,” sê die vrou. “Het Joab iets hiermee te doen?” vra hy haar. “U Majesteit,” sê sy, “’n mens kan sowaar niks vir u wegsteek nie! Ja, dit was u generaal, Joab, wat vir my gesê het om dit te doen. Hý het ook vir my alles gesê wat ek vir u moet sê. Joab het dit gedoen sodat u ’n bietjie uit ’n ander hoek na die saak kan kyk. Maar, U Majesteit, u is so slim soos ’n engel uit die hemel; u weet alles wat in die land gebeur.” Die koning het daarna vir Joab gesê: “Ja goed, ek sal doen wat jy wil hê. Laat die jongman Absalom maar terugkom.” Joab het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Hy het vir die koning baie dankie gesê. Hy het verder gesê: “U Majesteit, ek weet nou dat u vir my omgee, want u doen wat ek gevra het.” Joab het daar opgestaan en Gesur toe gegaan. Hy het vir Absalom teruggebring Jerusalem toe. Maar die koning het gesê: “Hy moet reguit na sy huis toe gaan. Ek wil hom nie sien nie.” Absalom is toe reguit na sy huis toe sonder om die koning te sien. Daar was in die hele land nie nog so ’n mooi mens soos Absalom nie. Almal het hom bewonder. Hy was ’n volmaakte man, van kop tot tone. Hy het ’n welige bos hare gehad. Een keer ’n jaar het hy sy hare afgeskeer omdat dit te lank geword het. Die afgeskeerde hare het omtrent twee kilogram geweeg volgens die gewigte van die staat. Absalom het drie seuns en ’n dogter gehad. Sy dogter se naam was Tamar. Sy was ’n beeldskone vrou. Absalom het vir twee jaar in Jerusalem gebly sonder dat hy ooit toegelaat is om by die koning te kom. Hy laat weet toe vir Joab hy wil hom sien. Hy wou hê Joab moes hom na die koning toe vat. Maar Joab wou nie na sy huis toe kom nie. Absalom het weer vir hom ’n boodskap gestuur, maar hy het nie gekom nie. Toe sê Absalom vir sy werkers: “Julle ken mos Joab se stuk land hier langs myne waar hy die gars geplant het. Gaan steek dit aan die brand!” Die werkers het die stuk land aan die brand gesteek. Joab het dadelik na Absalom se huis toe gekom en hom gevra: “Hoekom het jou werkers my land aan die brand gesteek?” “Omdat ek jou hoeveel maal laat weet het ek wil jou sien!” sê Absalom vir hom. “Ek wil jou na die koning toe stuur. Jy moet vir hom gaan vra hoekom ek teruggekom het van Gesur af. Ek kon maar net sowel daar gebly het! Die koning moet my toelaat om hom te sien. As ek skuldig is, moet hy my maar laat doodmaak.” Joab het dit vir die koning gaan sê. Die koning het Absalom laat roep. Toe hy by die koning kom, het hy met sy gesig tot teen die grond gebuig. Die koning het Absalom omhels. ’n Ruk later het Absalom vir hom ’n kar en perde gekry en 50 manne wat sy lyfwag was. Hy het elke môre vroeg opgestaan en langs die pad gaan wag waar die mense in die stad inkom. Elkeen wat ’n hofsaak gehad het en wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing het daar verbygegaan. Dan het Absalom die man geroep en vir hom gevra waar hy vandaan kom. As hy sê hy kom uit een van die dorpe van die Israeliete, sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.” Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!” As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels. Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom. Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.” Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.” Hy het dadelik Hebron toe gegaan. Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’” Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie. Absalom het ook vir Agitofel wat in die dorpie Gilo gebly het, na die offerfees laat kom. Agitofel het altyd vir Dawid goeie raad gegee. So het Absalom se geheime plan al hoe gevaarliker geword, want meer en meer mense het by hom aangesluit. Toe Dawid hoor die Israeliete het Absalom se kant gekies, sê hy vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Ons moet maak dat ons wegkom, voor Absalom ons in die hande kry! Julle moet gou maak en padgee, anders keer hy ons hier vas en dan het ons groot moeilikheid. Hy sal die mense in die stad voor die voet doodmaak.” Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.” Die koning is te voet uit die stad uit en al sy mense is agter hom aan. Hy het net tien van sy haremvroue in die paleis gelos om die plek op te pas. Toe die koning uit die stad gaan, is al sy eie manskappe ook agterna. By die laaste huis het die koning en sy mense gaan staan. Al die koning se eie soldate en sy hele lyfwag het voor hom verbygegaan. Die 600 man uit Gat wat by hom aangesluit het, het ook voor hom verbygegaan. Hy sê toe vir Ittai, die leier van die manne van Gat: “Hoekom gaan jy ook saam met ons? Gaan terug en bly by die nuwe koning. Jy kom uit ’n ander land en jy kan nie na jou eie plek toe teruggaan nie. Jy is maar ’n kort rukkie by ons en nou moet jy al weer oral rondtrek saam met ons. Ek weet nie eens waar ek heengaan nie. Laat jou mense teruggaan. Ek hoop dit gaan baie goed met jou.” Maar Ittai sê vir die koning: “Ek bly by u, my koning, so waar as die Here leef, en so waar as u leef. Waar u is, of dit nou in die lewe of in die dood is, sal ek ook wees.” “Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.” Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly. Die hele omgewing se mense het hardop gestaan en huil toe al Dawid se manskappe so verbytrek. Die koning is toe self ook saam met sy mense deur Kidronspruit in die rigting van die woestyn. Sadok en al die Leviete was ook in die groep. Hulle het die verbondsark van God by hulle gehad en dit op ’n plek neergesit waar Abjatar offerdiere verbrand het totdat almal wat saam met Dawid gegaan het, uit die stad was. Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien. As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.” Dawid het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet sake vir my dophou. Gaan rustig terug stad toe saam met Abjatar en julle twee seuns Agimaäs en Jonatan. Ek sal by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei wag totdat julle vir my laat weet wat aangaan.” Sadok en Abjatar het die verbondsark van God teruggevat Jerusalem toe en daar gebly. Dawid het die hele tyd geloop en huil toe hy teen die Olyfberg se rant opgegaan het. Hy was kaalvoet en hy het sy gesig toegehou. Almal wat saam met hom was, het ook kaalvoet geloop en huil en hulle gesigte toegehou. Iemand het vir Dawid vertel dat Agitofel saam met Absalom was in sy geheime plan. Dawid het maar net gesê: “Ag Here, steek tog ’n stokkie voor Agitofel se raad.” Toe Dawid bo-op die Olyfberg kom waar die mense gewoonlik bid, wag Gusai, die Erekiet, daar vir hom. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, gaan jy net in my pad wees. Maar as jy teruggaan stad toe, kan jy my help en die planne van Agitofel dwarsboom. Sê vir Absalom jy wil vir hom werk. Sê vir hom jy het voorheen vir my gewerk, maar nou is hy jou baas. Die twee priesters, Sadok en Abjatar, sal ook in Jerusalem wees. Sê vir hulle alles wat jy in die paleis hoor. Hulle twee seuns, Agimaäs en Jonatan, sal ook daar wees en hulle sal vir my alles kom sê wat julle uitvind.” Gusai, Dawid se ou vriend, het teruggegaan. Toe hy in die stad kom, kom Absalom ook daar aan. Net toe Dawid oor die top van die Olyfberg is, kom hy af op Siba, die man wat vir Mefiboset in die huis werk. Hy het ’n hele span donkies wat opgesaal was, by hom gehad. Op die donkies was 200 brode, 100 pakke rosyntjies, ’n klomp ryp vrugte en ’n groot kruik wyn. “Wat wil jy daarmee maak?” vra die koning hom. “Die donkies is vir die koning se gesin om op te ry en die brood en die vrugte is vir die manne. Die wyn is vir dié wat gedaan raak in die woestyn,” antwoord Siba. “En waar is Saul se kleinseun?” vra die koning. “Nee, hy het in Jerusalem agtergebly,” sê Siba. “Hy dink mos die Israeliete gaan hom vandag weer koning maak soos sy oupa was.” Toe sê die koning vir Siba: “In daardie geval is al Mefiboset se goed nou joune.” “Baie, baie dankie, U Majesteit,” sê Siba, “u is baie goed vir my.” Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan. Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent! Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!” Abisai, Seruja se seun, sê vir Dawid: “Maar waar kom dié dooie hond daaraan om my koning so te vloek? Laat ek soontoe gaan en sy kop vir hom inmekaar slaan!” Maar die koning sê: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Laat die man vloek. Miskien het die Here vir hom gesê hy moet my vloek. Wie kan dan vir hom sê: ‘Hoekom doen jy dit?’” Dawid sê toe verder vir Abisai en al sy amptenare: “My bloedeie kind wil my doodmaak. Wat moet ’n mens dan van hierdie Benjaminiet verwag? Los hom uit. Laat hy maar vloek. Dalk het die Here vir hom gesê hy moet dit doen. Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.” Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi. Die koning en al die mense wat saam met hom was, was stokflou toe hulle in die Jordaanvallei ingaan. Daar het die koning eers ’n bietjie gerus. Absalom en al die mans van Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by. Toe Gusai, Dawid se vriend, by Absalom kom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!” Absalom sê vir hom: “Is dít hoe lank jou vriendskap hou? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?” “Nee,” sê Gusai vir Absalom, “ek is vir die man wat deur die Here gekies is en wat deur hierdie mense en al die Israeliete gekies is. By hóm sal ek staan. Buitendien, ek móét mos my vriend se seun dien. Soos ek vir u pa gewerk het, sal ek vir u werk.” Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Komaan, gee raad! Wat moet ons nou doen?” Agitofel gee toe vir Absalom hierdie raad: “Slaap by jou pa se haremvroue wat hy hier gelos het om die paleis op te pas. Al die Israeliete moet weet dat jy jou pa in die gesig gevat het, dan sal hulle nog sterker by jou staan.” Hulle het toe vir Absalom ’n seil op die dak van die paleis gespan, en hy het daar voor al die Israeliete by sy pa se haremvroue geslaap. As Agitofel daardie tyd raad gegee het, was dit so goed of jy het ’n antwoord van God self af gekry. Dit is wat Dawid en Absalom van Agitofel se raad gedink het. Agitofel sê toe ook nog vir Absalom: “Laat my toe om 12 000 man uit te soek, dan sit ek Dawid dadelik agterna, sommer vannag nog. Ek sal hom aanval terwyl hy moeg en sy moed in sy skoene is. Ek sal hom só skrikmaak dat al sy manskappe wat by hom is, sal weghardloop. Dan maak ek net die koning dood. Ek sal al sy mense agter u kry. Hulle sal almal agter u staan soos hulle agter daardie man wat u soek, gestaan het. Almal sal gelukkig wees.” Absalom en al die leiers van Israel het gedink dis ’n goeie plan. Toe sê Absalom: “Roep ’n bietjie vir Gusai, die Erekiet, dat ons hoor wat hý te sê het.” Toe Gusai inkom, sê Absalom vir hom: “Dis wat Agitofel gesê het. Moet ons dit doen? As jy nie saamstem nie, moet jy praat.” Gusai sê toe: “Agitofel se plan is hierdie keer nie so goed nie. U ken u pa en sy manne: hulle is baie dapper en hulle is nou so kwaai soos ’n wilde beer wie se kleintjies afgeneem is. U pa is ’n ou soldaat: hy sal nie vannag by die manskappe slaap nie. U kan seker wees hy kruip weg in ’n klipskeur of so ’n plek. As van Agitofel se manne doodgemaak word in die eerste aanval, sal daar ’n storie versprei dat daar sommer baie van Absalom se mense dood is. Dan sal selfs die dapper manne wat vir g’n duiwel stuit nie, se moed hulle begewe, want al die Israeliete weet dat u pa ’n vegter is en dat daar dapper manne by hom is. “My plan sal wees om eers al die Israeliete wat kan veg, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, bymekaar te maak. Maak soveel manne bymekaar as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Gaan veg u dan self saam met hulle. Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie. En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.” Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het. Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.” Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat. Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie. Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.” Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe. Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan. Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier. Toe Agitofel sien die mense volg nie sy raad nie, het hy sy donkie opgesaal, sy goedjies gevat en na die dorp toe gery waar hy gebly het. Hy het vir sy huismense ’n paar laaste goed gesê wat hulle moet doen en homself toe opgehang. Hy is dood en hulle het hom in die familiegraf begrawe. Dawid het in Maganajim aangekom net toe Absalom en al die manne van Israel deur die Jordaanrivier trek. Absalom het vir Amasa aangestel as generaal in Joab se plek. (Amasa se pa was ’n man met die naam Jeter, ’n Israeliet wat met Abigal getroud was. Abigal was Nagas se dogter. Sy was weer ’n suster van Seruja, Joab se ma.) Die Israeliete en Absalom het in die Gileadstreek kamp opgeslaan. Toe Dawid daar in Maganajim aankom, het Sobi en Makir en Barsillai na hom toe gekom. (Sobi was Nagas se seun wat van Rabba van die Ammoniete af gekom het; Makir was Ammiël se seun uit Lo-Dabar, en Barsillai was ’n man van Gilead wat van Rogelim af gekom het.) Hulle het vir Dawid en sy mense beddegoed, breekgoed, bakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies, heuning en dikmelk, bokmelkkaas en beesmelkkaas gebring. Hulle het gesê: “Die mense het seker honger en moeg en dors geraak in die Jordaanvallei.” Dawid het die manne wat by hom was, laat aantree. Hy het hulle in groepe ingedeel en leiers aangestel vir groter en kleiner groepe. Dawid het daarna drie generaals aangestel: Joab was die generaal van een afdeling soldate, Joab se broer Abisai was die generaal van die tweede afdeling en Ittai, wat van Gat af gekom het, was die generaal van die derde afdeling. Die koning het vir die manskappe gesê: “Ek gaan self ook saam met julle veg.” “Nee, u gaan nie saam met ons veg nie,” het hulle gesê, “want hulle is net agter ú aan. Hulle sal nie omgee as ons dalk vlug nie; hulle sal ook nie eers omgee as die helfte van ons dood is nie. U is vir hulle belangriker as 10 000 van ons. Daarom is dit beter as u in die stad bly en ons van dáár af help.” “Goed, as julle so dink, sal ek dit doen,” sê die koning. Die koning het toe by die stad se ingang gaan staan en al die groepe van die leër het by hom verbygestap. Die koning het vir Joab en Abisai en Ittai duidelik gesê: “Moet asseblief nie te rof wees met die jongman, met Absalom, nie.” Al die manskappe het gehoor wat die koning vir die generaals oor Absalom gesê het. So het die manskappe dan uitgegaan veld toe om teen die Israeliete te veg. Die geveg het in die Efraimbos begin. Die Israeliete het die geveg teen Dawid se manskappe verloor. Daar is daardie dag baie van die Israeliete daar in die bos dood, omtrent 20 000. Die gevegte was naderhand oor ’n wye gebied en daar is meer mense in die bos dood soos hulle gevlug het, as wat daar met die swaard doodgesteek is. Absalom het hom in Dawid se manskappe vasgeloop. Hy het op ’n muil gery. Toe die muil onder die digte takke van ’n groot boom deurgaan, het Absalom se kop in die takke vasgehaak. Die muil is onder hom uit sodat hy daar tussen hemel en aarde bly hang het. Een van Dawid se manne het dit gesien en vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Ek het Absalom daar aan ’n boom sien hang.” “Wat?” sê Joab vir die man. “Het jy hom regtig gesien? En hoekom het jy hom nie net daar doodgemaak nie? Ek sou vir jou baie geld én ’n leerbelt gegee het!” “Nee,” sê die man vir Joab, “al gee u my ’n hoop geld, sal ek nie my hand optel vir die koning se seun nie. Ons het self gehoor toe die koning vir u en Abisai en Ittai gesê het dat niemand sy seun Absalom moet seermaak nie. As ek hom dalk doodgemaak het, sou die koning uitgevind het wie dit gedoen het, en dan sou u nie vir my opkom nie.” “Ek kan nie my tyd hier by jou staan en mors nie,” sê Joab, en hy gryp drie spiese en gaan steek Absalom daarmee in die bors waar hy nog so lewendig in die boom hang. Tien van Joab se wapendraers het op Absalom toegesak en hom doodgeslaan. Joab het op ’n ramshoring geblaas. Dit was die teken dat die soldate nie die Israeliete verder moes jaag nie. Hulle het Absalom se lyk gevat en dit in die bos in ’n groot gat gegooi. Toe het hulle hom met ’n groot hoop klippe toegepak. Intussen het al die Israeliete na hulle huise toe gevlug. In die Koningslaagte by Jerusalem is daar ook iets wat ’n mens aan Absalom laat dink. Hy het self daar ’n groot klip regop gesit en gesê: “Ek het mos nie ’n seun wat sal sorg dat ek onthou word nie.” Hy het die regop klip “Absalom se pilaar” genoem. Dis vandag nog die klip se naam. Sadok se seun Agimaäs het vir Joab gesê: “Ek wil graag hardloop en vir die koning die goeie nuus gaan vertel dat die Here sy vyande reggesien het.” “Nee man,” sê Joab vir hom, “jy kan nie vandag die nuus vir hom gaan vertel nie. Jy kan op ’n ander dag vir hom ’n boodskap vat. Vandag gaan jy nie. Onthou, dis darem die koning se seun wat dood is.” Toe sê Joab vir ’n man uit Afrika wat daar by hom is: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.” Die man het voor Joab gebuig en in die pad geval. Agimaäs hou toe aan by Joab en sê vir hom: “Kan ék nie asseblief ook maar agter daardie man aanhardloop nie?” “Maar my liewe mens,” sê Joab, “hoekom wil jy so graag die nuus gaan vertel? Jy sal nie geld kry daarvoor nie!” “Nee, ek wil maar net hardloop,” sê Agimaäs. “Nou hardloop dan maar,” sê Joab. Agimaäs spring toe daar weg en vat die pad deur die Jordaanvallei. Naderhand is hy voor die man uit Afrika. Dawid het tussen die eerste en die tweede groot deur by die ingang van die stad gesit. Die man wat op wag was, klim toe op in een van die uitkyktorings op die dik muur wat om die stad was. Toe hy uit die toring kyk, sien hy skielik iemand wat alleen aangehardloop kom. Hy skree vir die koning daar van bo af wat hy sien. Die koning sê toe: “As hy alleen is, bring hy nuus!” Die man in die pad het al nader gekom. Toe sien die wag nog ’n man wat aangehardloop kom. “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop!” skree hy vir die man wat by die deur wagstaan. “Dan bring hy ook nuus,” sê die koning. “Dit lyk vir my so aan sy hardloop die voorste een is Agimaäs, Sadok se seun,” skree die man in die toring. “Hy’s ’n goeie man,” sê die koning, “hy kom met goeie nuus.” Hy was nog ’n ent weg toe skree hy al vir die koning: “Als is reg!” Toe hy met sy gesig teen die grond voor die koning buig, sê hy: “U Majesteit, ons moet die Here, u God, prys, want Hy het die mense wat teen u opgestaan het, op hulle plek gesit.” “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning. “Ek het ’n groot klomp mense bymekaar gesien net toe u generaal, Joab, vir my gesê het om te hardloop. Maar ek weet nie wat het daar gebeur nie,” sê Agimaäs. “Gaan wag daar,” sê die koning. Hy het eenkant gaan staan. Net toe kom die man uit Afrika daar aan. Hy sê: “U Majesteit, ek het goeie nuus! Die Here het vandag almal reggesien wat teen u opgestaan het.” “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning. Daarop antwoord die man: “Ek hoop dieselfde sal gebeur met U Majesteit se vyande en met almal wat slegte planne teen u het, as wat met daardie jongman gebeur het.” Die koning was platgeslaan. Hy het na ’n kamer bo-op die stad se muur gegaan en in trane uitgebars. Hy het heen en weer geloop en gesê: “My seun, my Absalom, my seun, my seun, my Absalom. Ag, as ek maar dood was in jou plek, Absalom, my seun, my seun.” Die mense het vir Joab gaan vertel die koning huil en is hartseer oor Absalom. Toe die soldate hoor dat die koning se hart gebreek is oor sy seun, het die dag waarop hulle gewen het, vir almal ’n treurige dag geword. Hulle het daardie dag soos diewe die stad ingesluip. Hulle het gelyk soos mense wat skaam is oor hulle vir hulle vyande gevlug het. Die koning het die hele tyd sy gesig toegehou en kliphard gekla: “My seun, my Absalom, my Absalom, my seun, my seun.” Joab het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U stel vandag almal teleur wat so getrou by u staan, die manne wat u lewe gered het en u seuns en dogters s’n en al u vroue s’n. U is mos nou aan die kant van dié wat teen u is, en u is teen dié wat aan u kant is. U wys nou u gee nie ’n flenter om vir die offisiere en manskappe nie. Dit lyk vir my u sou daarvan gehou het as Absalom vandag nog geleef het en ons almal dood was! “Gaan nou dadelik uit en gaan praat mooi met die manne, want ek sweer nou voor die Here, as u nié uitgaan nie, sal daar vannag nie een man by u oorbly nie! En dít sal die grootste moeilikheid wees wat u nog ooit in u lewe gehad het.” Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het. Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het, het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom. Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?” Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat. Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat? En sê vir Amasa ons is ook mos naby familie en ek sweer vir hom voor God dat hy so lank ek lewe, in Joab se plek die hoofgeneraal gaan wees.” So het Dawid die Judeërs almal omgepraat en hulle het vir hom laat weet: “Kom terug saam met al u manskappe.” Die koning het teruggegaan. Toe hy by die Jordaanrivier kom, was die mense van Juda al by Gilgal om hom te verwelkom en hom oor die rivier te help. Simeï, Gera se seun, daardie Benjaminiet wat in Bagurim gebly het, was vreeslik angstig om die koning te verwelkom en het saam met die mense van Juda afgegaan rivier toe. Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier. Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë en sê vir hom: “U Majesteit, moet asseblief nie die verkeerde ding wat ek gedoen het, teen my hou nie. Moet tog nie dink aan die onnosel ding wat ek daardie dag aangevang het toe U Majesteit uit Jerusalem moes padgee nie. Vergeet dit, asseblief. Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.” Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!” Dawid antwoord toe: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Om die waarheid te sê, julle praat vandag teen my. Niemand in Israel sal vandag doodgemaak word nie. En dit sê ek omdat ek nou die koning van Israel is.” Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het gesweer dat dit nie sal gebeur nie. Mefiboset, Saul se kleinseun, het ook gegaan om die koning te verwelkom. Van die dag af dat die koning uit Jerusalem uit is tot op die dag dat hy weer veilig terug was, het Mefiboset nie sy voete gewas of geskeer of ander klere aangetrek nie. Toe hy later in Jerusalem by die koning kom, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” “U Majesteit,” het hy geantwoord, “omdat ek so swaar loop, het ek gedink ek sal ’n donkie laat opsaal waarmee ek kan ry en saam met U Majesteit gaan. Maar my werker het my in die steek gelaat. Boonop het hy my sleggemaak by u. Maar U Majesteit is so verstandig soos ’n engel uit die hemel. Doen maar met my wat u wil. U Majesteit kon my pa se hele familie doodgemaak het. In plaas daarvan het u my ’n plek gegee aan u tafel. Watter reg het ek dan om nou nóg ’n guns vir u te vra?” “Ons hoef nie verder daaroor te praat nie,” het die koning gesê. “Ek reël nou dat jy en Siba die grond van Saul moet deel.” Toe het Mefiboset geantwoord: “Ek is so bly dat U Majesteit veilig by die huis is, Siba kan maar alles kry.” Barsillai, die man uit Gilead, het van Rogelim af gekom om die koning by die Jordaanrivier af te sien. Hy was al 80. Dis hy wat vir die koning gesorg het toe die koning in Maganajim was. Hy kon dit doen, want hy was ’n skatryk man. Die koning het vir Barsillai gesê: “Kom saam met my oor die rivier. Kom bly by my in Jerusalem, dan sorg ek vir jou.” Maar Barsillai het geantwoord: “Ek weet nie hoe lank ek nog gaan leef nie. Dit sal nie ’n goeie ding wees as ek by U Majesteit in Jerusalem gaan bly nie. Ek is nou 80 jaar oud. My smaak is daarmee heen: ek kan nie meer iets wat ek eet of drink, geniet nie. Ek kan ook nie meer mooi hoor as die sangers en sangeresse sing nie. Ek sal net vir U Majesteit ’n las wees. Ek sal amper nie eers saam met U Majesteit oor die Jordaanrivier kom nie. Waarom moet u dan vir my soveel moeite doen? Laat ek maar omdraai en in my eie dorp doodgaan waar my pa en ma begrawe lê. Hier is my seun Kimham. Hy kan maar saam met U Majesteit gaan. Doen maar vir hom wat u wil.” Die koning het gesê: “Goed, Kimham gaan dan saam met my. Ek sal vir hom doen net wat jy vra. Ek sal enigiets vir jou doen.” Al die mense het toe oor die Jordaanrivier gegaan. Die koning is ook oor nadat hy vir Barsillai omhels en hom alles wat goed is, toegewens het. Barsillai het teruggegaan huis toe. Die koning is toe daarvandaan Gilgal toe. Kimham het saamgegaan. Al die manskappe van Juda en die helfte van die manskappe van Israel het die koning oor die rivier gehelp. Maar toe kom al die ander mans van Israel daar by die koning aan en sê vir hom: “Waar kom ons broers, die mense van Juda, daaraan om U Majesteit en sy gesin en al die mense by hom oor die Jordaanrivier te help?” Die mans van Juda antwoord toe sommer die mans van Israel en sê: “Oor die koning van ons familie is! Maar hoekom wip julle julle daaroor? Het ons miskien van die koning se kos geëet of van sy goed weggedra?” Daarop antwoord die mans van Israel: “Omdat ons tien stamme is, het ons tien keer meer reg op die koning as julle, ook op koning Dawid. Hoekom maak julle dan of ons nie enige regte het nie? Ons het in elk geval eerste gesê ons wil ons koning terugbring.” Die mans van Juda het toe nog skerper geantwoord as die mans van Israel. ’n Man met die naam Seba was toevallig in Gilgal. Hy was Bikri se seun uit die stam van Benjamin. Hy was ’n regte niksnut. Hy het op ’n ramshoring geblaas en geskree: “Ons het niks met Dawid te doen nie! Die seun van Isai is nie van ons mense nie! Kom ons gaan huis toe, Israeliete!” Al die Israeliete het vir Dawid gelos en is saam met Seba, seun van Bikri. Maar die mans van Juda het by hulle koning gebly en saam met hom gegaan van die Jordaanrivier af tot by Jerusalem. Toe Dawid in sy paleis in Jerusalem kom, het hy die tien haremvroue wat hy daar gelos het om die paleis op te pas gevat en hulle eenkant in ’n huis laat oppas. Hy het vir hulle gesorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Solank hulle geleef het, het hulle so eenkant gebly. Hulle was eintlik maar so te sê weduwees. Die koning het vir Amasa gesê: “Maak al die manne van Juda wat kan veg, vir my binne drie dae bymekaar. Sorg dat jy self ook hier is.” Amasa het die manne bymekaar gaan maak, maar dit het langer gevat as drie dae. Toe sê Dawid vir Abisai: “Seba, daardie seun van Bikri, gaan nou vir ons meer probleme gee as Absalom. Vat jý my soldate en kry hom in die hande voor hy dalk in ’n stad ingaan wat mure om het en onder ons oë uit is.” Abisai is toe met Joab en sy manne en die koning se lyfwag en sy dapper soldate van Jerusalem af agter Seba aan. By die groot klip in Gibeon het Amasa na hulle toe gekom. Joab het sy oorlogsklere aangehad. Hy het sy swaard in ’n skede bo-oor sy klere vasgemaak. Toe hy vorentoe kom, het sy swaard uitgeval. Joab sê vir Amasa: “En hoe gaan dit, ou broer?” en hy vat hom met sy regterhand aan die baard asof hy vir Amasa wil soen. Amasa het nooit die mes in Joab se ander hand gesien nie. Hy het Amasa se maag oopgekloof sodat sy binnegoed op die grond geval het. Dit was nie nodig om hom ’n tweede steek te gee om hom dood te maak nie. Joab en sy broer Abisai het toe maar net verder geloop om Seba te gaan soek. Een van Joab se manne het by Amasa gaan staan en geskree: “As julle van Joab hou en vir Dawid is, volg Joab!” Amasa het in die middel van die pad in ’n plas bloed gelê en krul van die pyn. Toe die man sien al die manskappe gaan by Amasa staan, het hy hom uit die pad gesleep die veld in. Toe hy sien almal gaan staan nog om te kyk, het hy hom met klere toegegooi. Daarna het al die manskappe agter Joab aangegaan om vir Seba, seun van Bikri, te gaan soek. Joab het by al die stamme van Israel gesoek tot hy Seba in Abel (dis nou Bet-Maäka) gekry het. Al die Beriete het bymekaargekom en ook saam met Joab gegaan. Hulle het Seba in Abel-Bet-Maäka vasgekeer. Hulle het ’n skuins wal teen die voormuur van die stad gepak en so kon al die soldate by die groot muur om die stad kom. Hulle het teen die muur gestamp om dit te laat val. ’n Slim vrou het bo van die muur af geskree: “Haai, hoor hierso! Sê asseblief vir Joab hy moet hiernatoe kom! Ek wil met hom praat!” Joab het nader gegaan en die vrou het vir hom gevra: “Is u Joab?” “Ja,” antwoord Joab. “Kan ek maar vir u iets sê?” vra sy. “Ja, ek luister,” sê hy. Die vrou sê toe: “Daar was ’n ou spreekwoord wat gesê het: ‘As jy regtig probleme het, sal hulle dit vir jou in Abel oplos.’ Ons is bekend as vredeliewende, getroue Israeliete. Nou wil u ’n stad wat ’n voorbeeld is in Israel se mense doodmaak. Hoekom wil u ’n plek vernietig wat aan die Here behoort?” “Nee, nooit!” antwoord Joab. “Ek is nie daarop uit om te vernietig en te verwoes nie! Dís nie my plan nie! Maar hier is iemand by julle wat teen koning Dawid in opstand is. Hy kom van die Efraimberge af en sy naam is Seba, seun van Bikri. As julle hóm net vir my gee, dan los ek die stad uit.” Die vrou sê vir Joab: “U kan seker wees sy kop sal vir u van die muur afgegooi word.” Die vrou het die mense in die stad oortuig en hulle het Seba se kop afgekap en dit vir Joab gegooi. Joab het op ’n ramshoring geblaas en sy manskappe het sommer reguit huis toe gegaan. Joab self is terug na die koning toe in Jerusalem. Joab was die hoof van die hele weermag van Israel. Jojada se seun Benaja was die hoof van die koning se lyfwag. Adoniram moes sorg dat die slawewerk gedoen word. Josafat, Agilud se seun, was die regering se sekretaris. Sewa moes alles vir die regering opskryf en Sadok en Abjatar was die belangrikste priesters. Ira, wat van Jaïr af gekom het, was ook een van Dawid se priesters. Daar was op ’n keer in Dawid se tyd baie min kos in die land. Dit het vir drie jaar aangehou omdat dit nie gereën het nie. Dawid het toe vir die Here gaan vra wat verkeerd is. Die Here se antwoord was: “Saul het mense van Gibeon laat doodmaak, en sy familie moet eers daarvoor betaal.” (Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie. Hulle voorouers was Amoriete. Die Israeliete het belowe hulle sal hulle nie doodmaak nie, maar Saul het probeer om hulle uit te roei omdat hy gedink het dit sal beter wees vir die mense van Israel en Juda.) Dawid het die mense van Gibeon laat roep en vir hulle gevra: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek die saak regstel sodat dit weer goed kan gaan met die Here se land?” Die mense van Gibeon het gesê: “Ons wil nie Saul of sy familie se geld hê nie. Aan die ander kant mag ons seker nie vra dat van die Israeliete doodgemaak word nie, of hoe?” “Ek sal doen wat julle vir my vra,” sê Dawid. Hulle sê toe vir die koning: “Daardie man wou ons uitroei; hy het ’n plan gehad om ons só by te kom dat ons nêrens in die land ’n plekkie sou hê nie. Daarom moet sewe van sy kinders of kleinkinders vir ons gegee word sodat ons hulle kan ophang om die Here tevrede te stel. Ons wil hulle in Gibea ophang, die dorp waar Saul gewoon het, die man vir wie die Here eers gekies het.” Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.” Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe. Die koning het toe Rispa se twee seuns gegee. Hulle name was Armoni en Mefiboset. (Rispa was een van Saul se vroue; haar ma was Aja.) Hy het ook die vyf seuns van Merab, Saul se dogter wat met Adriël getroud was, gegee. (Adriël was Barsillai van Megola se seun.) Hy het hulle vir die mense van Gibeon gegee. Die mense van Gibeon het hierdie sewe mans almal gelyk doodgemaak en hulle op die berg by die Here se altaar opgehang. Dit het gebeur aan die begin van die oestyd, net toe die mense begin gars oes het. Rispa, Aja se dogter, het ’n swart bokhaarkombers gevat en vir haar ’n skuiling op die klipplaat gemaak. Daar het sy gesit en bedags die aasvoëls en snags die jakkalse van die lyke af weggehou. Sy het by die lyke waggehou vandat die oes begin het totdat dit op die lyke gereën het. Die mense het vir Dawid gaan vertel wat Rispa, Saul se haremvrou, gedoen het. Hy het toe Saul en sy seun Jonatan se bene laat haal by die mense van Jabes in Gilead. (Die mense van Jabes het hulle lyke mos een nag gaan afhaal van die binnekant van die muur van Bet-San af waar die Filistyne hulle opgehang het nadat hulle vir Saul op Gilboaberg doodgemaak het.) Dawid het Saul en Jonatan se bene en die bene van die mans wat by Gibeon opgehang is, in Benjamin, in Kis se graf by Sela laat begrawe. Nadat die mense alles presies gedoen het soos die koning vir hulle gesê het, het God weer die land jammer gekry en die mense se gebede geantwoord. [15-16] Daar was weer oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne. Dawid het saam met sy soldate gaan veg. Hulle kamp was in Gob. Dawid het baie moeg geword in die geveg. ’n Filistyn het toe gedink hy kan Dawid doodmaak. Hy was ’n reus van ’n man. Sy spies se bronspunt het meer as drie kilogram geweeg. Hy wou Dawid met sy nuwe swaard doodsteek. *** Maar Abisai, Seruja se seun, het Dawid gaan help en die Filistyn platgeslaan en doodgesteek. Daarna het Dawid se manne hom laat sweer dat hy nooit weer saam met hulle sal gaan veg nie. Hulle was bang hy kom iets oor en dit sou ’n donker dag wees vir Israel. Daarna was daar nog ’n geveg teen die Filistyne in Gob. In dié geveg het Sibbekai wat van Gusa af gekom het, ook so ’n groot man doodgemaak. Die man se naam was Saf. In nóg ’n geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan (hy was Jaïr, een van die wewers in Betlehem, se seun) vir Goliat wat van Gat af gekom het, doodgemaak. Die handvatsel van Goliat se spies het gelyk soos die balk waaraan die mense wat weef, hulle wol hang. In ’n ander geveg in Gat was daar ’n baie lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet. Hy het, met ander woorde, twaalf vingers en twaalf tone gehad. Hy was ook een van daardie groot mense, die Refaïete. Hy het die Israeliete uitgetart, maar Jonatan, Dawid se broer Samma se seun, het hom doodgemaak. Hierdie vier groot Filistyne het almal uit Gat gekom. Hulle was almal Refaïete wat in die gevegte teen Dawid en sy manne dood is. Dawid het hierdie lied vir die Here geskryf nadat die Here hom gehelp het teen al sy vyande en teen Saul. Die Here is vir my soos ’n plek tussen die rotse waar ek kan wegkruip; by Hom kan niemand my bykom nie. My God, by U is ’n mens altyd veilig. U keer my vyande; U maak my sterk sodat ek hulle kan wen. U is ’n veilige wegkruipplek; U help my teen al die geweld. Die Here moet geprys word, want as ek sy hulp vra, help Hy my teen my vyande. Soos ’n groot golf wou die dood oor my breek, soos ’n vol rivier wou hy my saamsleep. Ek was klaar vas in die dood se toue, ek het al klaar in sy strik getrap. Toe ek so diep in die moeilikheid was, het ek na die Here geroep; ek het geskree my God moet my help. In sy paleis het Hy gehoor hoe ek roep; Hy het gehoor hoe benoud ek is. Daar was ’n groot aardbewing; dit het gevoel of die hemel in sy fondamente geskud word, want die Here was baie kwaad. As Hy kwaad is, is dit soos ’n vuurspuwende berg waar die rook uit trek en vuur en lawa uitstroom. Hy het die hemel oopgeskuif en afgekom; Hy het op donker wolke gaan staan. Dit het gelyk of Hy in die wolke op ’n dier met vlerke ry, of die stormwind sy vlerke is waarmee Hy vlieg. Die Here het in ’n donderstorm nader gekom, in die donker reënwolke. Daar waar Hy was, het die blitse geslaan. Toe die weer dreun, kon jy weet: dis die Here wat daar praat, dis die hoë God se stem! Met weerligstrale het die Here my vyande uitmekaargejaag; die blitse het hulle op loop gesit. As die Here kwaad is en Hy praat, is dit soos ’n orkaan; as Hy so hard praat, gee die see sommer pad sodat jy die aarde se fondamente kan sien. Die Here het uit die hemel my hand gegryp en my uit die woeste water opgetrek. Hy het my weggeruk van my grootste vyand af, van dié mense af wat my haat en te sterk is vir my. Hulle het my aangeval toe ek swak was, maar die Here het my regop gehou. Die Here het my na ’n veilige plek gevat; Hy het my uitgehelp, want Hy hou van my. Die Here het dit vir my gedoen omdat ek onskuldig is; Hy was goed vir my, want ek het nie kwaad gedoen nie. Ek het gedoen wat die Here vir my gesê het; ek het nie my rug vir God gedraai nie. Ek dink gedurig aan alles wat Hý wil hê ek moet doen; ek maak soos Hy sê. Ek het presies gedoen wat die Here van ’n mens verwag; ek het gesorg dat ek niks verkeerds doen nie. Die Here was aan my kant, want Hy het geweet ek is onskuldig. Here, U sorg vir dié wat aan U getrou is; vir ’n mens wat voluit vir U lewe, gee U alles. Vir die een wat ’n skoon lewe lei, is U goed. Maar ’n vals mens kry teëspoed by U. U help mense op wie daar getrap word, maar U hou ’n hoogmoedige mens dop en haal hom van sy troontjie af. Here, U is vir my soos ’n lamp wat die donker om my wegvat. As U my help, hardloop ek oor ’n skans; as my God by my is, klim ek oor ’n stad se muur. God maak nie foute nie; die Here praat net die waarheid. As ’n mens in die moeilikheid is en na Hom toe gaan, beskerm Hy jou. Daar is nie nog ’n god behalwe die Here nie, en ’n mens is nêrens so veilig soos by ons God nie. God maak my sterk; Hy maak my pad gelyk. Hy maak my so rats soos ’n ribbok sodat ek op ’n steil krans kan staan. Hy leer my hoe om oorlog te maak, hoe om met ’n koperboog te skiet. Here, U het my beskerm en my gehelp. U het my sterk gemaak toe U my gebed geantwoord het. U maak die grond gelyk onder my, my voete sal nie swik nie. Ek kon my vyande inhaal en hulle platloop. Ek kon aanhou tot hulle gedaan is. Ek het hulle so platgeslaan dat hulle nie weer kan opstaan nie. Hulle is teen die grond. U het my die krag gegee om te veg; U het my vyande op hulle knieë gedwing. Hulle het vir my gevlug; ek kon dié wat teen my is, uitroei. Hulle het geskree iemand moet hulle help, maar niemand kon nie. Hulle het na U geroep, Here, maar U wou hulle nie antwoord nie. Ek het hulle stukkend getrap, ek het oor hulle geloop soos ’n mens oor stof en modder in die strate loop. U het my gehelp toe my eie mense my wou onderkry. U het my boonop die koning van ander volke gemaak; mense wat ek nie eens ken nie, werk vir my en vreemde mense kruip voor my. As ek praat, doen hulle wat ek sê. Hierdie vreemde mense kon nie meer teen my veg nie, hulle moes maar oorgee. Die Here leef! Die Here moet geprys word! Hy het my beskerm. Die God wat my beskerm en help, moet grootgemaak word! Hy is die God wat my laat wen, wat volke aan my gehoorsaam maak, wat my vry gemaak het van my vyande. U het gesorg dat hulle my nie bykom nie; U het my weggeruk van mense wat net op geweld uit is. Daarom wil ek U prys, Here, wil ek vir die mense sing tot u eer. Die Here laat sy koning ver wen; Hy is goed vir die koning wat Hy gekies het, vir Dawid en sy mense wat lank na hom sal regeer. Hierdie is ’n lied wat genoem is “Dawid se laaste woorde”. ’n Profesie van Dawid, Isai se seun, ’n profesie van iemand vir wie God ’n hoë posisie gegee het, vir wie die God van Jakob uitgekies het, die digter van Israel se mooiste liedere. Die Gees van die Here praat deur my; Hy sê vir my wat ek moet sê. Die God van Israel het gepraat; Israel se God by wie ’n mens veilig is, het vir my gesê: As iemand ’n regverdige koning is en respek het vir die Here, is hy soos die helder son op ’n wolklose môre wat die gras laat groei na die reën. Dis hoe God wil hê my regering moet wees, want Hy het vir my ’n belofte gemaak wat vir altyd bly staan. Hy het self die belofte gemaak en Hy sal sy belofte hou. Hy help my in alles wat ek wil doen; Hy sorg dat dit voorspoedig gaan. Maar slegte mense is soos droë doringtakke wat die wind uitmekaargewaai het: ’n mens raak nie aan hulle nie. Al wat ’n mens daarmee kan doen, is om hulle bymekaar te krap met die punt of handvatsel van ’n spies en hulle net daar te verbrand. Hier is die name van Dawid se dapperste soldate: Joseb-Bassebet van die Tagkemon-familie was die leier van die beroemde drie. Hy het in een geveg met sy oorlogsbyl wat hy so bokant sy kop swaai, 800 man kafgeloop. Eleasar, Dodo se seun, was die tweede van die drie beroemde helde van Dawid. Hy was van die Agoagfamilie. Hy was by toe hulle die keer die Filistyne uitgetart het wat reg was vir die geveg. Toe die Filistyne storm, het die manne van Israel teruggeval, maar Eleasar het bly staan en teen die Filistyne geveg tot hy ’n kramp in sy hand gekry het en nie sy swaard kon los nie. Die Here het daardie dag ’n groot slag vir die Israeliete geslaan. Die manskappe het hom later gaan help, maar eintlik was dit maar net om die klere en wapens van die lyke af te haal. Die derde een was Samma. Hy was Agee, wat van Harar af gekom het, se seun. Die Filistyne het eenkeer by Legi saamgetrek. Daar was ’n land vol lensies en die manskappe het vir die Filistyne gevlug. Samma het in die middel van die land gaan staan om dit te verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het so vir die Israeliete ’n groot slag geslaan. Drie van Dawid se 30 helde het eenkeer in die oestyd na Dawid toe gegaan waar hy in die Adullamgrot was. Die Filistyne se leër het in die Spooklaagte kamp opgeslaan. Dawid het toe in die berg weggekruip omdat die Filistyne ’n afdeling soldate in Betlehem gehad het. Dawid het gesug en gesê: “Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.” Die drie heldhaftige mans het toe by al die Filistyne se wagte verbygegaan en water gaan skep uit die put waar jy in Betlehem ingaan. Hulle het dit vir Dawid gevat, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi en gesê: “Ek sal dit nooit drink nie, Here! Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!” Hy wou dit glad nie drink nie. Dit is hoe dapper daardie drie was. Abisai (Joab se broer en die seun van Seruja) was die leier van die 30 helde van Dawid. Hy het met sy spies 300 manne doodgesteek. Sy naam word saam met die drie mans genoem wat vir Dawid water gaan haal het. Hy was beroemder as die 30 helde en hy het hulle leier geword, maar hy kom nie naby die beroemde drie nie. Benaja, die dapper Jojada se seun, wat van Kabseël af gekom het, is vir baie dinge bekend. Hy het die twee mans wat “die leeus van Moab” genoem is, doodgemaak. Dis hý wat eendag toe dit gesneeu het in ’n ondergrondse reservoir ingegaan en ’n leeu daar doodgemaak het. Dis ook hy wat daardie lang Egiptenaar doodgesteek het. Die Egiptenaar het ’n spies in sy hand gehad en Benaja het net ’n stok gehad. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. Dit is hoe dapper Benaja, seun van Jojada, was. Sy naam word ook saam met die drie helde genoem wat vir Dawid water gaan haal het. Hy was beroemder as die 30 helde, maar hy kom ook nie naby die beroemde drie nie. Dawid het hom die leier van sy lyfwag gemaak. Onder Dawid se dapperste soldate tel ook nog: Asael, Joab se broer; Elganan, Dodo van Betlehem se seun; Samma en Elika van Garod; Geles van Pelet; Ira, Ikkes van Tekoa se seun; Abiëser van Anatot; Sibbekai van Gusa; Salmon van Agoag; Marai van Netofa; Geled, Baäna van Netofa se seun; Ittai, Ribai van Gibea in Benjamin se seun; Benaja van Piraton; Hiddaj van Nagale-Gaäs; Abi-Albon van Bet-Araba; Asmawet van Bagurim; Eljagba van Saälbon; Jasen van Gun; Jonatan die seun van Samma van Harar; Agiam, Sarar van Arar se seun; Elifelet, Agasbai van Maäka se seun; Eliam, Agitofel van Gilo se seun; Gesro van Karmel; Paärai van Arab; Jigal, Natan van Soba se seun; Bani van Gad; Selek die Ammoniet; Nagrai van Beërot wat Joab se wapendraer was; Ira en Gareb van Jeter, en Urija die Hetiet. Almal saam was hulle 37. Die Here het weer ’n keer vir die Israeliete kwaad geword. Toe het Hy Dawid teen hulle opgesteek en gesê: “Gaan hou ’n sensus in Israel en Juda.” Die koning het vir Joab, sy groot generaal, gesê: “Gaan by al die stamme van Israel langs, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, en skryf al die manskappe op. Ek wil weet hoeveel is daar wat kan veg.” Joab het die koning geantwoord: “Kyk, ek hoop die Here u God maak die manskappe ’n honderd maal meer as wat hulle alreeds is, en ek hoop dit gebeur nog in u leeftyd; maar U Majesteit, hoekom wil u ’n sensus hou?” Maar die koning het Joab en die ander offisiere van die weermag doodgepraat. Hulle het toe van die paleis af gegaan om die sensus te gaan hou. Hulle het oor die Jordaanrivier gegaan en by die spruit suid van die dorp Aroër begin tel. Daarna is hulle na Gad en Jaeser toe. Hulle het noord deur Gilead gegaan tot by Kades in die rigting van die Hetiete se land. Daarvandaan het hulle na Dan-Jaän gegaan en toe wes na Sidon gedraai. Hulle is suid na Tirus, die stad met die muur om, en van daar af is hulle na al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete. Hulle is by al die dorpe langs tot in die suide van Juda by Berseba. Hulle het die hele land deurgegaan. Dit het nege maande en twintig dae gevat voor hulle weer terug was in Jerusalem. Joab het die getal van die manne wat kon veg, vir die koning gegee: daar was 800 000 in Israel en 500 000 in Juda. Na die sensus het Dawid se gewete hom begin pla. Hy het vir die Here gaan sê: “Dis ’n verkeerde ding wat ek gedoen het, Here; vergewe my asseblief dat ek so onnosel was.” Die volgende môre toe Dawid opstaan, kom die profeet Gad na hom toe. Hy moes altyd vir Dawid sê wat die Here wil hê. [12-13] Hierdie keer moes hy vir Dawid gaan sê: “Die Here sê jy kan kies wat Hy met jou moet doen: moet daar drie jaar hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande vlug vir jou vyande, of moet daar vir drie dae ’n pessiekte in jou land wees? Dink mooi daaroor, dan sê jy vir my wat ek vir die Here moet gaan sê.” *** Dawid het vir Gad gesê: “Ek is diep in die moeilikheid! Al wat ek kan sê, is: ek wil nie aan mense uitgelewer wees nie. Laat ons liewer aan die Here uitgelewer wees, want Hy sal ons jammer kry.” Die Here het daardie môre ’n pessiekte in Israel laat uitbreek wat vir drie dae aangehou het. In die hele land is daar 70 000 mense dood. Toe die doodsengel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om ook dáár dood en verwoesting te saai, het die Here spyt gekry oor die verskriklike ramp en gesê: “Wag, dis nou genoeg. Moenie verder gaan nie.” Die engel van die Here was op daardie stadium by ’n groot klipplaat waar Arauna, ’n Jebusiet, sy koring dors. Toe Dawid sien hoe die engel die mense platslaan, sê hy vir die Here: “Dis ék wat gesondig het. Dis ék wat verkeerd gedoen het. Hierdie arme mense verdien dit nie om soos skape geslag te word nie. Straf my en my familie liewer.” Gad het dieselfde dag na Dawid toe gekom en gesê: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op daardie klipplaat waar Arauna die Jebusiet sy koring dors.” Dawid het toe na die klipplaat toe opgeklim soos die Here vir hom gesê het in die boodskap wat Gad gebring het. Toe Arauna afkyk en sien die koning en sy amptenare is op pad na hom toe, het hy gegaan en met sy gesig teen die grond voor die koning gebuig. Arauna vra toe: “U Majesteit, waarom kom u na my toe?” “Ek wil jou dorsvloer koop om vir die Here ’n altaar te bou,” sê Dawid vir hom, “sodat die pessiekte wat die mense doodmaak, kan ophou.” “Vat dit, U Majesteit,” sê Arauna vir Dawid, “offer net wat u wil. U kan my beeste slag en die dorsslee en jukke vir vuurmaakhout gebruik. U Majesteit, Arauna gee dit alles vir u. En mag die Here u offer aanvaar.” “Nee, Arauna,” sê Dawid, “ek gaan jou definitief die volle prys betaal. Ek kan nie vir die Here my God offer sonder dat dit my iets gekos het nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 silwerstukke by hom gekoop. Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en offerdiere geslag. Party het hy heeltemal verbrand en die ander is vir die heilige ete gaargemaak. Die Here het toe die mense se gebede beantwoord en die pessiekte laat ophou. Koning Dawid was nou al ’n baie ou man. Hulle het hom met komberse toegemaak, maar dit kon hom nie warm maak nie. Ten einde raad het Dawid se mense gesê: “U Majesteit, laat ons vir u ’n jongmeisie kry wat by u kan bly en wat vir u kan sorg. Sy kan ook langs u lê en u probeer warm maak.” Dawid het ingestem en hulle het oral na ’n mooi jongmeisie gesoek. Uiteindelik het hulle in Sunem se omgewing die regte een gekry. Haar naam was Abisag en hulle het haar reguit na die koning toe gevat. Sy was werklik baie mooi. Sy het Dawid met alles gehelp en hom goed versorg. Hulle het egter nie seks gehad nie. Na Absalom se dood was Adonia die oudste seun. Adonia is net na Absalom gebore. Hy was Dawid en Gaggit se kind en ’n baie aantreklike jongman. Sy pa het egter nooit met hom geraas nie en hy het gedoen net wat hy wou. Adonia was ’n mooi jongman, maar baie ambisieus; hy wou graag koning word. Hy het toe vir hom ’n klomp strydwaens, perde en 50 lyfwagte gekry. Hy het stilletjies met Joab, die seun van Seruja, en met Abjatar die priester gekonkel en hulle het beloof om hom te steun. Sadok, die ander priester, Benaja, die seun van Jojada, Natan die profeet, asook Simeï, Reï en al Dawid se lyfwagte het botweg geweier om Adonia te ondersteun. ’n Paar dae later het Adonia ’n klomp skape, beeste en vetgemaakte kalwers gevat en dit by die Sogeletrots naby die Rogelfontein gaan offer. Hy het toe die ander seuns van Dawid asook van sy amptenare wat van Judese afkoms was, na die feesmaal genooi. Adonia het egter nie sy halfbroer Salomo of die profeet Natan of Benaja of enigiemand van die koning se lyfwagte genooi nie. Natan was baie ontsteld hieroor en het na Batseba, Salomo se ma, gegaan en haar gevra: “Het u gehoor dat Adonia die seun van Gaggit homself koning gemaak het? Indien u u eie lewe en dié van Salomo wil spaar, moet u onmiddellik na die koning toe gaan en vir hom vra: ‘U Majesteit, het u my nie lank gelede al beloof dat my seun Salomo na u koning sal word nie? As dit so is, waarom het Adonia dan vandag koning geword?”’ Natan het egter iets belangriks bygevoeg: “Terwyl u nog met die koning praat, sal ek binnekom en dieselfde dinge vir die koning sê.” Batseba is toe na die koning se kamer toe. Hy was baie oud en Abisag, die vrou uit Sunem, het hom verpleeg. Batseba het laag voor hom gebuig en Dawid het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen?” Batseba sê toe: “U Majesteit, lank gelede het u my in die Naam van die Here u God beloof dat my seun Salomo na u koning sou word. Vandag het Adonia egter koning geword. Niemand het u nog daarvan vertel nie. Hy het baie beeste, skape en vetgemaakte kalwers geoffer en al u seuns genooi. Abjatar die priester, en Joab, die hoof van u leër, was ook daar. Adonia het u seun Salomo egter nie genooi nie. U Majesteit, die hele Israel wag op u. U moet nou sê wie na u koning moet word. As u niks gaan sê nie, sal Adonia vir my en Salomo na u dood soos verraaiers behandel.” Batseba was nog aan die praat toe Natan daar aankom. Hulle het vir die koning gesê die profeet is daar en Dawid het gesê hy moet inkom. Natan het die kamer binnegegaan en laag voor die koning gebuig. Natan het gevra: “U Majesteit, is dit u wat gesê het dat Adonia in u plek moet koning word? Adonia het vandag ’n groot klomp beeste, skape en vetgemaakte kalwers by die Sogeletrots gaan offer. Hy het al u seuns soontoe genooi en die leërhoofde en Abjatar die priester was ook daar. Op hierdie oomblik vier hulle fees en kort-kort skree die mense: ‘Lank lewe koning Adonia.’ Maar, U Majesteit, hy het nie een van ons genooi nie. Nie vir my nie, ook nie vir Sadok, die ander priester nie en ook nie vir Benaja nie. Selfs Salomo is nie eens genooi nie. Is dit reg wat Adonia gedoen het, U Majesteit? Moet hy u opvolg? Het u alles so beplan sonder om ons daarvan te vertel?” Koning Dawid het geantwoord: “Gaan roep vir Batseba! Sê sy moet onmiddellik hierheen kom!” Batseba het teruggekom en voor die koning gaan staan. Toe het hy vir haar gesê: “Ek belowe voor die lewende Here, die God wat my uit soveel moeilikhede en probleme gehelp het, dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.” Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.” Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê: “Vat nou al my lyfwagte en dan laat julle my seun Salomo op my eie muil klim. Gaan julle dan almal saam met hom na die Gihonfontein toe. Laat Sadok die priester, en Natan die profeet hom daar voor almal as koning van Israel salf. Laat die trompette klink en die mense skree: ‘Lank lewe koning Salomo!’ Gaan dan saam met hom terug en laat hom op my troon sit. Ja, laat hom daar sit, want hy is die een wat na my sal regeer. Ek het hóm gekies om oor Israel en Juda te regeer.” “Ons sal so maak,” het Benaja geantwoord. “En mag die Here, u God, ons help dat alles goed sal verloop. En soos die Here by u was, mag Hy ook by Salomo wees. Mag Salomo se koningskap selfs voorspoediger wees as dié van Dawid.” Sadok, Natan, Benaja, asook die koning se lyfwagte het Salomo op koning Dawid se muil gesit en is saam met hom Gihonfontein toe. Sadok het ’n houer met olie uit die tent waar die Here altyd teenwoordig was, saamgeneem. En hy het Salomo gesalf. Toe het hulle die trompette begin blaas en geskree: “Lank lewe koning Salomo.” Almal is toe saam met Salomo terug. Hulle was uitbundig bly en het vrolik op hulle fluite gespeel. Van al die geraas het die aarde eintlik gebewe. ’n Entjie daarvandaan het Adonia en sy gaste net klaar geëet en gedrink toe hulle skielik die geraas gehoor. Joab het die trompette veraf gehoor en gesê: “Waarom raas die mense so in die stad?” Joab het skaars klaar gepraat of Jonatan die seun van die priester Abjatar kom daar aangestap. “Kom binne, Jonatan,” het Adonia gesê. “Jy is ’n goeie mens en ek weet jy bring vir ons goeie nuus.” “Ongelukkig nie,” het Jonatan geantwoord. “Koning Dawid het sy seun Salomo pas koning gemaak. Hy het Sadok, Natan, Benaja en die koninklike lyfwag na Salomo toe gestuur. Hulle het hom op die koning se muil gesit. By die Gihonfontein het Sadok en Natan hom as koning gesalf. Daarna is hulle terug stad toe terwyl die volk vrolik gesing en gedans het. Tans is die stad die ene uitbundigheid. Dit is die geraas wat julle nou daar hoor. Salomo het selfs op die koning se troon gaan sit. Maar iets ergers het nog gebeur. Al die koning se amptenare is na koning Dawid toe om hom met sy seun geluk te wens. Almal het gesê hulle hoop dat God vir Salomo beroemder en voorspoediger as Dawid sal maak. Die koning het by sy bed gekniel en gesê: ‘Kom ons loof die Here, die God van Israel, wat vandag een van my eie kinders koning laat word het. Loof die Here dat elkeen van ons dit met ons oë kon sien.’” ’n Groot angs het Adonia en sy gaste beetgepak. Almal het vinnig opgespring en is daar weg. Elkeen het sy eie koers ingeslaan. Adonia was benoud en baie bang dat Salomo hom sou kry. Hy het toe sommer reguit na die tent waar die Here teenwoordig was, gehardloop en aan die hoeke van die altaar gaan vashou. Hulle het vir Salomo vertel dat Adonia bang is vir hom en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasklou terwyl hy aanmekaar sê: “Ek los nie voordat koning Salomo gesweer het hy sal my nie doodmaak nie.” Salomo het geantwoord: “Laat hom tog maar gaan. En sê vir hom as hy aan die koning getrou is, sal daar nie eens ’n haar van sy kop afval nie. As hy egter verkeerd doen, sterf hy onmiddellik.” Koning Salomo het manne gestuur om Adonia by die altaar te haal en hom van die koning se besluit te vertel. Adonia is toe reguit na die koning toe en het laag voor hom gebuig. Salomo het vir hom gesê: “Jy kan maar huis toe gaan.” Toe Dawid voel sy einde is naby, het hy sy seun Salomo laat kom. Soos ’n goeie pa het hy Salomo ’n paar laaste stukkies goeie raad gegee. “Binnekort sal ek soos alle mense sterf,” het Dawid begin. “Maar jy moet moed hou en sterk wees. Doen wat die Here jou God van jou vra. Leef volgens die riglyne wat Hy vir Moses gegee het. Gehoorsaam sy wette en kom al sy voorskrifte na. As jy dit doen, sal dit altyd met jou goed gaan. As jy getrou is, sal die Here sy belofte aan my nakom. Lank gelede het Hy belowe dat my nageslag altyd oor Israel sal regeer. Maar dan moet my kinders Hom met alles in hulle, ja, met hulle hele wese, liefhê en getrou aan My bly. “Daar is ook iets anders. Jy onthou nog vir Joab? Hy het mos destyds twee van my generaals sonder rede doodgemaak. Die een was Abner die seun van Ner, en die ander een Amsa die seun van Jeter. Dit was onnodig en boonop nog in vredestyd. Die hele ding bly my hinder. Dit is of hulle bloed nou nog aan my lyf en my klere en my skoene kleef. Ek wil nie vir jou voorsê wat om te doen nie. Daarvoor is jy slim en wys genoeg, maar moenie dat Joab se daad ongestraf bly nie. “Wees egter baie goed vir die seuns van Barsillai, die man van Gilead. Sorg tog vir dié mense, want hulle het my destyds gehelp toe ek vir jou broer Absalom gevlug het. “O ja, daar is nog iemand. Dit is Simeï die seun van Gera. Hy kom van ’n klein dorpie, Bahurin, in die stamgebied van Benjamin. Die einste Simeï het my eendag vreeslik gevloek toe ek op pad Mahanajim toe was. Net duskant die Jordaan het ons mekaar raakgeloop en toe het hy my gevloek. Ek het hom egter in die Naam van die Here beloof om hom nie dood te maak nie. Ek wil weer nie vir jou voorskryf nie, maar Simeï se daad moet gestraf word. Omdat jy slim is, sal jy weet wat om te doen.” Toe het Dawid gesterf. Hulle het hom by sy mense in Jerusalem, die stad waar Dawid gewoon en gewerk het, begrawe. Dawid het 40 jaar oor Israel regeer, eers sewe jaar in Hebron en toe 33 jaar in Jerusalem. Salomo het sy pa as koning opgevolg. Sy koningskap is deur almal aanvaar en hy het ’n vaste greep op sy koninkryk gehad. Op ’n dag het Adonia, die seun van Haggiet, vir Batseba, die ma van Salomo, besoek. “Kom jy in vrede?” het Batseba gevra. “Ja,” het Adonia geantwoord. “Ek wil u iets vra,” het hy voortgegaan. “Wat is dit?” het Batseba gevra. Adonia het gesê: “U weet tog dat ek eintlik koning moes geword het. Baie mense in Israel het ook so gedink, maar toe het dinge anders verloop. My broer het koning geword, want die Here wou dit so gehad het. Ek wil u ’n groot guns vra. Moet dit asseblief nie weier nie.” “Wat is dit, Adonia?” het Batseba gevra. Adonia het keelskoongemaak en toe gevra: “Sal u nie asseblief met koning Salomo praat en hom vra of ek met Abisag, die vrou uit Sunem, mag trou nie? As u hom namens my vra, weet ek hy sal luister.” “Goed,” het Batseba gesê, “ek sal met die koning oor jou versoek gesels.” Batseba het met die koning oor Adonia se versoek gaan praat. Toe sy die vertrek binnekom, het Salomo opgestaan en in eerbied voor sy ma gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en gesê hulle moet vir sy ma ’n stoel bring. Batseba het aan die regterkant van Salomo gaan sit. Na ’n ruk het Batseba vir Salomo gesê: “Ek kom met ’n klein versoekie en ek hoop jy sal dit nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” het Salomo gesê. “Ek help mos graag.” Batseba sê toe: “Kan jou broer Adonia tog nie maar met Abisag trou nie?” “Wat?” het Salomo gesê. “Hoe kan Ma dit vra? Adonia vra vir Abisag, maar eintlik wil hy my koningskap hê. Hy is my ouer broer. En Abjatar die priester en Joab, die seun van Seruja, is natuurlik kop in een mus met hom. Nee, jammer, Ma, maar Adonia kry nie vir Abisag nie!” Salomo was woedend. Hy sê toe: “Mag die Here my straf as ek Adonia skotvry laat wegkom. Die Here het my koningskap voorspoedig gemaak en almal is aan my getrou. Lank gelede al het die Here my pa beloof dat ek en my kinders oor Israel sal regeer. Daarom sal ek vandag nog sorg dat Adonia vir sy opstand teen die koning boet.” Salomo het toe sy polisiehoof, Benaja, opdrag gegee om Adonia te arresteer en hom oor sy ontrouheid tereg te stel. Salomo het vir Abjatar laat kom en vir hom gesê: “Eintlik verdien jy die dood, maar ek sal jou toelaat om na jou tuisdorp Anatot terug te gaan. Ek spaar jou omdat jy as priester naby aan die Here was toe jy die ark gedra het en omdat jy my pa in al sy swaarkry bygestaan het.” Salomo het Abjatar weggestuur. Hy was nie meer een van die Here se priesters in Jerusalem nie. So het die woorde van die Here in verband met die ondergang van Eli en sy kinders se priesterskap in Silo waar geword. Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy baie bang geword, want hy het Adonia ondersteun. Destyds was hy aan Dawid se kant teen Absalom, maar nou het hy vir Adonia gekies. In sy angs het Joab na die tent waar die Here teenwoordig was, gevlug en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasgeklou. Toe Salomo hoor Joab het na die tent gevlug en hou wanhopig aan die altaar se hoeke in die tent vas, het hy iemand na Joab toe gestuur. Hy moes uitvind waarom Joab na die tent toe gevlug het. Joab het gesê dat hy uit vrees vir Salomo na die Here gevlug het. Toe hy dit hoor, het Salomo Benaja ontbied. “Gaan maak hom dood,” het Salomo vir Benaja gesê. Benaja is na die tent toe en het vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet buitentoe kom.” “Nooit nie,” het Joab gesê. “As ek dan moet sterf, sterf ek net hier.” Benaja is daar weg en het die koning alles vertel wat Joab gesê het. “Doen dan wat Joab sê jy moet doen,” het Salomo geantwoord. “Maak hom daar op die plek dood en begrawe hom dan. Ek en my pa se kinders sal dan nie meer verantwoordelik gehou kan word vir Joab se moord op twee van my pa se generaals nie. Met Joab sal presies gebeur wat hy destyds met Abner, die hoof van Israel se leër, en Amasa, die hoof van Juda se troepemag, gedoen het. Sonder my pa se medewete het hy twee onskuldige mense doodgemaak. Joab se nageslag sal vir ewig die gevolge van hierdie verraderlike moord moet dra. Die Here sal egter altyd naby die kinders van Dawid wees wat oor Israel regeer.” Benaja is onmiddellik na die tent toe. Hy het Joab net daar doodgemaak en hom by sy huis in die woestyn laat begrawe. Salomo het Benaja in die plek van Joab as hoof van die leër aangestel terwyl Sadok, die priester, Abjatar se take oorgeneem het. Daarna het Salomo Simeï laat kom en vir hom gesê: “Jy kan vir jou ’n huis in Jerusalem bou, maar jy mag nooit die stad verlaat nie. As jy ooit buite Jerusalem gaan of selfs maar deur die stroompie hier onder in die Kidrondal loop, is jy dood. En dit sal dan jou eie skuld wees.” “Dit is goed so, U Majesteit,” het Simeï geantwoord. “Ek sal maak soos u sê.” Simeï het in Jerusalem gaan woon en ’n lang tyd daar gebly. Drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop. Hulle het vir Akis, die seun van Maok en die koning van Gat, vir meer geld gaan werk. Toe Simeï hiervan hoor, was hy woedend. Sonder om verder te dink het hy sy donkies gepak en is na koning Akis toe in Gat. Hy wou ten alle koste sy slawe terugkry. Toe Salomo hiervan hoor, was die gort gaar. Hy het Simeï laat kom en gesê: “Jy het my voor die Here beloof dat jy Jerusalem nooit sal verlaat nie. Ek het jou gewaarsku as dit gebeur, gaan jy met jou lewe betaal. Het jy nie destyds ingestem en gesê dat jy my bevel sal gehoorsaam nie? “Hoekom het jy nie jou belofte nagekom nie? Waarom was jy ontrou? “Jy onthou nog al die slegte dinge wat jy vir my pa gesê het. Hiervoor gaan die Here jou vandag straf. Met jou sal dit van nou af net sleg gaan. Die Here sal egter by my wees en Hy sal Dawid se troon tot in ewigheid beskerm.” In opdrag van Salomo het Benaja Simeï by sy huis gaan doodmaak. Salomo was nou volkome in beheer van die hele land. Salomo het ’n ooreenkoms met die koning van Egipte gesluit deur met sy dogter te trou. Hy het sy nuwe vrou Jerusalem toe gebring en haar in die Dawidstad laat woon. Salomo se paleis, die tempel en die stadsmure was toe nog nie klaar gebou nie. Omdat daar nog nie ’n tempel vir die Here was nie, het die volk op verskillende plekke in die land geoffer. Salomo was lief vir die Here en het gemaak soos sy pa gesê het. Hy het die Here se wil gedoen en was getrou aan Hom. Salomo moes egter ook soos die volk op verskillende plekke vir die Here offer. Op ’n keer het hy in Gibeon gaan offer, omdat dit die bekendste offerplek was. Salomo het 1 000 brandoffers daar op die altaar geoffer. Daardie nag het die Here met Salomo in ’n droom gepraat en vir hom gevra: “Wat kan Ek vir jou gee?” Salomo het gesê: “Here, U was lief vir my pa en hy was ook lief vir U. My pa was getrou aan U; hy wou net die regte dinge doen en hy wou U met sy hele hart dien. En U was goed vir my pa deur hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg en wat vandag oor Israel regeer. Here, U het my in die plek van my pa koning gemaak, maar ek weet nie altyd hoe om goed te regeer nie, want ek is nog jonk. Ek moet oor ’n volk regeer wat U vir Uself gekies het, en daar is so baie van hulle dat ek hulle nie eens kan tel nie. Daarom vra ek u wysheid om goed oor u mense te regeer. Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hoe kan ek sonder u hulp hierdie groot volk van U regeer?” Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het. Hy sê toe vir hom: “Jy het nie ’n lang lewe of baie geld of die ondergang van jou vyande gevra nie, maar die wysheid om goed te regeer. Ek sal alles vir jou gee. Ek sal jou trouens baie meer wysheid en insig gee as wat enigeen voor jou gehad het, of selfs na jou sal hê. Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie. As jy soos jou pa na My luister en my wil doen, sal Ek jou ook baie lank laat leef.” Salomo het wakker geword en besef die Here het in ’n droom met hom gepraat. Hy is reguit Jerusalem toe en het daar voor die ark van die ooreenkoms aanmekaar geoffer. Hy was so bly en gelukkig dat hy uit dankbaarheid talle offers vir die Here gebring het. Toe hy daarmee klaar was, het hy ’n groot fees vir al sy amptenare gehou. Op ’n dag het twee prostitute na Salomo toe gekom en hulle probleem aan hom vertel. Eers het die een prostituut haar kant van die saak gestel en gesê: “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon saam in dieselfde huis. My seun is in die huis gebore terwyl hierdie vrou by was. Twee dae na my seun se geboorte het sy self ’n seun in wêreld gebring. Slegs ons twee was in die huis toe die kinders gebore is. Niemand was by ons toe dit gebeur het nie. Een nag het dié vrou per ongeluk in haar slaap op die kind gelê en hy het versmoor. Gedurende die nag het sy toe stil-stil opgestaan en die slapende kind langs my opgetel en na haar bed toe geneem. Toe het sy die dooie kind gevat en hom langs my in die bed gesit. Vroeg die volgende oggend het ek wakker geword om my kind te voed. Dit is toe dat ek sien hy is dood. Ek het stip na die kind gekyk en besef dit is nie my seun nie.” Die ander vrou het dit ontken en gesê: “Nee, jy is verkeerd. Die kind wat leef, is myne en die dooie een is joune.” So het hulle voor die koning staan en stry. Salomo het goed geluister en toe vir homself gesê: “Die een sê: ‘Die kind wat leef, is myne,’ terwyl die ander een weer sê: ‘Dit is nie waar nie. Jou kind is dood. Dit is myne wat nog leef.’” Salomo het vir ’n swaard gevra en toe gesê: “Sny die een wat leef, middeldeur en gee aan elke vrou ’n helfte.” Toe die regte ma dit hoor, het haar hart inmekaargekrimp. Sy was so lief vir die kind dat sy onmiddellik vir die koning gesê het: “Asseblief, U Majesteit, asseblief. Moet tog net nie die kind doodmaak nie. Laat sy dan maar die kind kry, maar moet hom tog net nie doodmaak nie.” Die ander vrou het weer gesê: “Sny die kind in die middel deur sodat nie een van ons iets van hom sal hê nie.” Salomo het toe gesê: “Stop! Moenie die kind doodmaak nie! Gee hom vir die eerste vrou, want sy is die kind se regte ma.” Toe die mense hiervan hoor, was hulle diep beïndruk en het groot respek vir Salomo gehad. Hulle het gesê die Here het hom insig en wysheid gegee om regverdig in hofsake te oordeel. Salomo was koning oor die hele Israel. Sy hoofamptenare se name was: Asarja seun van Sadok was hoëpriester. Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was staatsekretarisse; Josafat seun van Agilud was die hoofamptenaar. Benaja seun van Jojada was die leërhoof; Sadok en Abjatar was priesters. Asarja seun van Natan was hoof van die streeksbestuurders; Sabud seun van Natan was koninklike raadgewer. Agisar was paleisopsigter; Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid. Salomo het twaalf streeksbestuurders vir die hele Israel aangestel. Hulle moes sorg dat elke distrik sy beurt kry om die koning en sy huishouding ’n maand lank te onderhou. Die volgende is die name van die twaalf bestuurders en die streke waarvoor hulle verantwoordelik was: Ben-Gur vir die Efraimsberge. Ben-Deker vir Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan. Ben-Gesed vir Arubbot, wat ook Soko en die hele Gefer-streek ingesluit het. Ben-Abinadab was met Salomo se dogter Tafat getroud en hy was vir die hele berggebied van Dor verantwoordelik. Baäna seun van Agilud vir Taänak, Megiddo en Bet-San wat aan Saretan onderkant Jisreël grens; die hele gebied van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam. Ben-Geber vir Ramot in Gilead en die dorpies in Gilead wat aan die Jaïr-familie, afstammelinge van Manasse, behoort het; asook die Argob-gebied in Basan, 60 groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons. Aginadab seun van Iddo vir Maganajim. Agimaäs was met nog ’n dogter van Salomo, Basemat, getroud en hy was vir Naftali verantwoordelik. Baäna seun van Gusai vir Aser en Alot. Josafat seun van Paruag vir Issaskar. Simeï seun van Ela vir Benjamin. Geber seun van Uri vir die Gilead-streek, wat vroeër deur die Amoritiese koning, Sihon en die koning van Basan, Og, regeer is. Vir hierdie hele streek was daar net een bestuurder. Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand van die see. Hulle het geëet en gedrink en was baie gelukkig. Salomo het oor al die nasies vanaf die groot Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en tot by die Egiptiese grens regeer. Hierdie nasies het almal belasting betaal en was aan Salomo getrou. Salomo se huishouding en personeel se daaglikse kosgebruik was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo het oor die hele land wes van die Eufraatrivier regeer, vanaf Tifsag by die Eufraat tot so ver wes as Gasa. Al die konings wes van die Eufraat was deel van Salomo se koninkryk. En Salomo het in vrede geleef met al die omliggende volke. So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad. Salomo het 40 000 stalle vir die perde van sy strydwaens gebou en 12 000 vir sy ryperde. Elkeen van Salomo se twaalf streeksbestuurders het ’n beurt gekry om ’n maand lank kos aan die koning en al sy baie amptenare te voorsien. Streeksbestuurders moes ook vir die ryperde en trekperde se gars en hooi sorg. Hulle moes dit daar gaan aflaai waar die mense dit nodig gehad het. Die Here het Salomo gehelp om goed te regeer en om die land met wysheid te bestuur. Sy kennis van landsake het geen gelyke in die wêreld gehad nie. Salomo was slimmer en wyser as al die slimkoppe van die Ooste of Egipte. Hy was selfs slimmer as Etan die Esragiet, asook Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Al die omliggende lande het van Salomo se wysheid gehoor en hy het al hoe bekender geword. Hy het meer as 3 000 spreuke gemaak en 1  005 liedere gekomponeer. Hy het gedigte oor bome en plante gemaak en oor alles geskryf, van die seders van die Libanon tot die hisop wat op die mure groei. Oor diere, voëls, reptiele en visse het hy graag gepraat. Oor die hele wêreld het mense van Salomo se wysheid gehoor en hulle het kom luister. Konings oor die hele wêreld het vir hom geskenke gestuur. Koning Hiram van Tirus was altyd ’n goeie en getroue vriend van Dawid. Toe hy hoor dat Salomo sy pa opgevolg het, het hy ’n groep ambassadeurs Jerusalem toe gestuur. Salomo het ’n boodskap van dank aan Hiram gestuur en ook die volgende vir hom gesê: “Soos u weet, het my pa altyd teen die omliggende volke oorlog gemaak. Omdat hy eers al hierdie volke moes oorwin, was dit nie vir hom moontlik om vir die Here sy God ’n tempel te bou nie. Met my gaan dit baie goed, want daar is oral vrede. Op die grense van die land is dit rustig; daar is geen gevaar van enige vyand nie. Die Here het lank gelede vir my pa gesê dat hy nie die tempel moet bou nie, maar dat sy opvolger dit sal doen. Ek het besluit om nou daarmee te begin. Ek wil die tempel bou sodat daar ’n plek kan wees waar ek die Here my God sal kan aanbid. Ek wil u vra om my te help. Stuur asseblief u manne na die Libanon om daar vir my seders te gaan kap. My manne sal dit hier verder saam met u manne bewerk. Soos u weet, kan my mense nie so goed bome kap soos u manne nie. Onthou, ek sal u mense betaal wat u ook al vra.” Hiram was baie bly oor Salomo se boodskap en het gesê: “Loof die Here vandag omdat hy Dawid so ’n slim seun gegee het. ’n Seun wat hom kon opvolg en die koning van ’n groot nasie kon word.” Hiram het nie gras onder sy voete laat groei nie en hy het Salomo geantwoord: “Dankie vir u boodskap. Ek is bereid om te help en sal u van seders en sipreshout voorsien. My manne sal die boomstompe van die Libanon af na die see toe sleep. Daar sal hulle dit aan mekaar vasmaak en die vlotte met die see langs laat afkom tot waar u dit wil hê. Daar sal my manne dit weer losmaak en u manne kan dan oorneem. U moet asseblief net genoeg kos aan my mense voorsien.” Hiram het Salomo al die seders en sipresse laat kry wat hy nodig gehad het. Salomo het op sy beurt elke jaar vir Hiram 2 000 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie gestuur. Die Here was goed vir Salomo en het hom die nodige wysheid gegee om goed te regeer. Die verhouding tussen Salomo en Hiram was uitstekend en hulle het ’n vredesooreenkoms gesluit. Koning Salomo het 30 000 man van oor die hele Israel opgeroep om met al die bouprojekte te help. Hy het Adoniram oor hulle aangestel en dié het hulle in drie groepe van 10 000 ingedeel. Elke groep het een maand in die Libanon en twee by die huis deurgebring. Verder het Salomo 80 000 man by die steengroewe in die berge gehad en 70 000 wat die stene moes dra. En hy het ook 3 300 voormanne aangestel om toesig oor die werk te hou. Salomo het die werkers beveel om mooi, groot stene vir die tempel se fondament te kap. Salomo en Hiram se werksmense asook die mense van die stad Gebal het die stene en die hout pasklaar gemaak sodat die bouers net kon begin bou. Salomo het die tempel in die tweede maand, die maand Sif, begin bou. Dit was 480 jaar nadat Israel uit Egipte getrek het en vier jaar nadat Salomo koning geword het. Salomo se tempel was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog. Aan die tempel se voorkant was daar ’n voorportaal van tien meter in lengte en vyf meter in breedte. Die voorportaal was net so lank as wat die tempel breed was. Salomo het ook vensters met kosyne en traliewerk ingesit. Aan die buitenste muur van die tempel het hy ’n platform gebou wat om die gebou geloop het. Onder en bo-op hierdie platform het Salomo verdiepings gebou. Elke kamer in die onderste verdieping was ongeveer twee meter breed. In die middelste verdieping was die kamers amper drie meter breed en op die boonste verdieping net oor die drie meter. Al die klippe waarmee die tempel gebou is, is reeds by die steengroef reggekap. Op die tempelterrein was daar dus geen geraas van hamers, byle of ander ystergereedskap nie. Die ingang tot die onderste verdieping was aan die suidekant van die tempel. Van daar kon ’n mens met trappe na die tweede en derde verdieping klim. Salomo het toe die tempel stuk vir stuk klaar gebou. Bo-op die plafon het hy stroke sederhout oorkruis laat lê. Die platform wat hy buite-om die tempel gebou het, was net oor die twee meter hoog. Hy het die platform met groot sederbalke aan die tempel se muur vasgemaak. Die Here het vir Salomo gesê: “As jy My liefhet en elke dag my wil uitleef, sal Ek vir jou doen wat Ek jou pa, Dawid, beloof het. Ek sal in die midde van my volk woon en altyd in die tempel teenwoordig wees. Ek sal Israel nooit verlaat nie.” Salomo het toe die tempel klaar gebou. Die binnemure van die tempel is van bo tot onder met panele van sederhout bedek. Die hele vloer was van sipresplanke. Aan die agterkant van die tempel was daar ’n kamer van tien meter wat die Allerheiligste genoem is. Dit was van die vloer tot die dak met sederhout afgewerk. Uit die Allerheiligste het ’n mens in ’n ander groot kamer ingestap. Dit is die voorste heiligdom genoem en was twintig meter lank. En as ’n mens uit die voorste heiligdom gestap het, het jy in die binneste heiligdom gekom. Dit was die plek waar die verbondsark van die Here gestaan het. Dit is aan die binnekant met sederhout uitgevoer. Op die houtpanele is daar kalbasse en blomknoppe uitgesny. Alles was so netjies met sederhout uitgevoer dat ’n mens nie die klip kon sien nie. Hierdie binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Voor die binneste heiligdom was daar ’n altaar wat Salomo met suiwer goud oorgetrek en met sederhout versier het. Salomo het ook die binneste heiligdom met suiwer goud bedek. Voor die ingang na dié deel is daar ’n ketting van suiwer goud gespan. Nie net die binneste heiligdom nie, maar die hele tempel is met goud afgewerk. Ook die altaar is met goud oorgetrek. Salomo het twee gerubs van olyfhout laat maak en dit in die binneste heiligdom gesit. Elke gerub was vyf meter hoog. Elke gerub se vlerke was twee en ’n half meter lank, dus vyf meter van die een punt van die vlerk tot die ander punt. Albei gerubs was ewe groot en het ook presies dieselfde gelyk. Albei gerubs was vyf meter hoog. Salomo het die gerubs in die binneste heiligdom gesit. Die punt van die een se vlerk het aan die een muur geraak en die ander gerub se vlerkpunt het weer aan die ander muur geraak. Presies in die middel van die vertrek het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak. Salomo het ook die twee gerubs met suiwer goud oorgetrek. Teen die tempel se binnemure het Salomo gerubs, palms en blomknoppe gehang wat in hout uitgekerf is. In sommige vertrekke is die vloer met goud oorgetrek. ’n Dubbeldeur van olyfhout is by die ingang van die Allerheiligste gesit. Die kosyn het die vorm van ’n vyfhoek gehad. Op albei deure is figure van gerubs, palms en blomknoppe uitgesny en alles is met goud oorgetrek. Salomo het ook twee dubbeldeure by die ingang van die voorste heiligdom geplaas. Die kosyn was ook van olyfhout en het ’n vierhoek gevorm. Albei die dubbeldeure was van sipreshout en op elke deur is ’n groot sirkel uitgesny. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit toe met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele ingedruk. Hy het ook die binneste voorhof aan die voorkant van die tempel gebou. Reg rondom was daar mure van een laag sederhout en drie lae gekapte klip. Die tempel se fondament is in die vierde jaar van Salomo se regering, in die tweede maand, die maand Sif, gelê. In Salomo se elfde regeringsjaar, in die agtste maand, die maand Bul, is die tempel klaar gebou. Die bouwerk het sewe jaar geduur. Salomo het vir hom ’n paleis gebou waaraan hy dertien jaar lank gewerk het. Verder het hy ook nog die Libanonsbosgebou opgerig. Dit was 50 meter lank, 25 meter breed en vyftien meter hoog. Die boonste deel van die gebou het op vier rye sederhoutpilare gerus. Bo-op die pilare was daar ook balke van sederhout. Daar was ook ’n plafon wat gerus het op 45 pilare, vyftien in ’n ry. In elkeen van die twee symure was daar drie rye vensters. Al die vensters was teenoor mekaar. Al die deuropeninge en die vensters was reghoekig. Die deure en die vensters is so gerangskik dat hulle teenoor mekaar was. Salomo het ook ’n pilaargang gebou wat 25 meter lank en vyftien meter breed was. Voor die pilaargang was daar ’n portaal met ’n dak wat ver oor die portaal gesteek het. Dan was daar ook nog die troonsaal. Dit was die plek waar Salomo al die sake aangehoor en uitspraak gelewer het. Die hele vertrek was van bo tot onder met sederhout uitgevoer. Salomo se woonhuis is teen die agterste muur van die troonsaal gebou. Dit was min of meer dieselfde grootte as die troonsaal en het dieselfde afwerking as die ander geboue gehad. Vir die farao se dogter met wie hy getroud was, het hy ’n huis volgens die plan van die troonsaal gebou. Al die geboue is van die fondament tot die dak met ’n baie duursame klip gebou. Die gedeelte van die straat tot by die groot voorhof is ook met hierdie klip geplavei. Dit is vooraf in die steengroef volgens maat gekap en toe baie netjies met ’n saag aan alle kante afgewerk. Die fondamente is met groot klippe van vier meter en vyf meter gebou. Hierdie duursame klippe is ook in die steengroewe gekap en voorberei. Bo-op hierdie klippe is ander klippe, wat presies volgens maat gekap is, asook stroke sederhout, gesit. Die mure rondom die groot voorhof het uit drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke bestaan. Die mure van die binneste voorhof van die tempel, asook die paleis se voorportaal, is op dieselfde manier gebou. Koning Salomo het ’n man met die naam Hiram gehuur. Hy het in Tirus gebly en was ’n uitstekende vakman. Hy het veral in bronswerk gespesialiseer. Hiram se pa het in Tirus gewoon, maar is vroeg dood. Hy was ook ’n bekende vakman in bronswerk. Sy ma was ’n vrou uit die stam van Naftali. Hiram was baie slim. Hy het die vaardigheid, kennis en insig gehad om enigiets uit brons te maak. Salomo het hom gehuur omdat Hiram enigiets kon doen wat hulle hom gevra het. Hiram se eerste taak was om twee groot pilare uit brons te giet. Hulle was nege meter hoog en ses meter in omtrek. Toe het hy twee bronsvorms van twee en ’n half meter gegiet en dit bo-op die pilare gesit. Elke vorm bo-op ’n pilaar is met gevlegte kettingwerk versier. Op elke bronsvorm is twee rye granate van brons gesit. Die bronsvorms is in die vorm van ’n lelie gebou en elkeen was ongeveer twee meter hoog. Aan die bokant van die bronsvorms was daar 200 granate in twee rye gerangskik. Hiram het die twee groot bronspilare voor die ingang van die tempel opgerig. Die een aan die suidekant het hy Jakin en die een aan noordekant Boas genoem. Bo-op die pilare was daar dan die bronsvorms wat soos lelies gelyk het. Hierna het Hiram al sy aandag aan die bronswaterbak gewy. Hierdie waterbak was heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, en met ’n omtrek van vyftien meter. Net onder die waterbak se rand was daar twee rye kalbasse wat reg rondom geloop het en wat saam met die waterbak uit een stuk gegiet is. Die waterbak het op twaalf bronsbeeste se rûe gerus. Drie het na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste toe gekyk. Die waterbak se kante was ongeveer nege sentimeter dik. Sy rand was soos die rand van ’n beker en in die vorm van die kelk van ’n lelie. Dit kon 44 kiloliter hou. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en ’n half meter hoog. Hy het vir elke waentjie sypanele gemaak wat die raamwerk moes bedek. En op die sypanele was daar leeus, beeste en gerubs. Bo en onder die leeus en die beeste het kettinkies in reliëf gehang. Elke waentjie het vier bronswiele met bronsasse gehad. Op elke waentjie was daar ’n staander waarop ’n waskom kon rus. En al die staanders is met kransies versier. Elke staander het ’n ronde opening gehad waarin die waskom kon inpas. Dit was amper ’n meter diep en breed. Rondom die opening was daar allerlei graveerwerk. Die waentjies se sypanele was vierkantig en nie rond nie. Die waentjies se vier wiele was onder die sypanele en die wielasse was aan die waentjie vas. Elke wiel was ’n meter hoog. Die wiele was soos die wiele van ’n strydwa. Dit beteken dat hulle asse, vellings, speke en nawe alles van brons gemaak is. Die vier stutte aan elke waentjie se vier hoeke is saam met die waentjie gegiet en het ’n geheel daarmee gevorm. Bo-op elke waentjie was daar ’n ronde staander van 25 sentimeter. Plate aan die kante het dit toegemaak. Waar daar ook al plek op hierdie syplate was, is dit met gerubs, leeus, palms en kransies versier. So het Hiram toe die tien waentjies gemaak. Hy het hulle in dieselfde vorm gegiet sodat almal eenders en ewe groot was. Hierna het Hiram tien bronswaskomme gemaak, een vir elke waentjie. Elkeen was twee meter in deursnee en kon 880 liter bevat. Hy het vyf waentjies aan die suide- en vyf aan die noordekant van die tempel gesit. Die waterbak het hy in die suidoostelike hoek gesit. Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. En hy het al die werk aan die tempel wat hy in opdrag van Salomo gedoen het, voltooi. Dit is wat hy gedoen het: die twee bronspilare wat Boas en Jakin genoem is; die twee komvormige vorms bo-op die twee pilare; die gevlegte kettinkies op elke kapiteel; die 400 brons granate wat in twee rye van 100 elk rondom elke kapiteel gerangskik is; die tien waentjies; die tien waskomme; die waterbak met die twaalf beeste daaronder; die potte, die skoppe en die komme vir besprinkeling. Hiram het al hierdie toerusting vir die tempel in opdrag van Salomo gemaak. Hy het alles van gepoleerde brons gemaak. Die koning het al hierdie toerusting by ’n gietery in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet. Salomo het nooit al hierdie bronsvoorwerpe laat weeg nie, want daar was te veel. Die presiese gewig van hierdie voorwerpe is nooit vasgestel nie. Salomo het ook ’n aantal voorwerpe uit goud laat maak: die altaar, die tafel vir die offerbrood; die tien kandelare wat voor die binneste heiligdom gestaan het; die blomkelke, die lampe en die pithouers; die bekers, die skêre, die komme vir besprinkeling, die panne vir die wierook en die vuurbakke waarmee gloeiende kole gedra is. Al hierdie voorwerpe is van suiwer goud gemaak. Verder was die skarniere van die deure na die binneste vertrek, die Allerheiligste, ook van goud, sowel as die skarniere van die tempel se voordeure. Nadat koning Salomo die tempel klaar gebou het, het hy al die silwer, goue en ander voorwerpe wat sy pa, Dawid, in sy lewe versamel en aan die Here se diens gewy het, in die tempel se voorraadkamers gaan stoor. Nadat Salomo die tempel gebou het, het hy al die stamleiers en die familiehoofde van Israel in Jerusalem bymekaar laat kom. Hy wou hê hulle almal moes teenwoordig wees wanneer die verbondsark van die Here uit Dawid se stad gedra word. Almal het toe op die feesdag in die maand Etanim, dit is die sewende maand, in Jerusalem bymekaargekom. Toe almal daar was, het die priesters die ark waarin die bewys van die ooreenkoms van God met sy volk was, opgetel en dit na die tempel toe gedra. Van die Leviete het toe gekom en die tent waar die Here altyd teenwoordig was, met al sy toebehore ook in die tempel gaan neersit. Salomo en almal saam met hom het toe voor die verbondsark, wat hulle voor die tempel neergesit het, gaan staan en begin offer. Daar was soveel kleinvee en beeste wat geoffer is dat dit nie eens getel kon word nie. Daarna het die priesters weer die verbondsark opgetel en dit binne-in die tempel ingedra. Daar het hulle dit baie versigtig onder die gerubs se vlerke in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gaan neersit. Die verbondsark, asook die houtpale waarmee dit gedra is, het net mooi onder die gerubs se uitgestrekte vlerke ingepas. Die houtpale was egter ’n bietjie te lank en ’n stukkie het by die Allerheiligste uitgesteek. ’n Mens kon dit net sien as jy vlak voor die Allerheiligste gestaan het. Die pale is vandag nog daar. Daar was niks in die verbondsark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses nog by Sinai in die ark gesit het. By Sinai het die Here met Israel na die uittog uit Egipte ’n ooreenkoms gesluit. Toe die priesters uit die heiligdom gekom het, het ’n helder, wit wolk die huis van die Here gevul. Almal het die teenwoordigheid van die Here aangevoel. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie eens hulle werk kon doen nie. Op daardie oomblik is Salomo so deur die Here se nabyheid aangegryp dat hy gesê het: “Here, U is by ons en tog is U ook ver. U is teenwoordig en tog woon U in die donkerte. Here, hierdie wonderlike tempel het ek vir U gebou. Dit moet vir altyd u woonplek wees.” Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen. Dawid se bedoeling was opreg en vir die Here was dit mooi, maar Hy het gesê dat Dawid se seun vir Hom ’n tempel sou bou. En hoe getrou is die Here nie! Ek het in my pa se plek koning geword en ek kon die tempel vir die Here bou. So het die Here sy belofte nagekom. Ek het ook vir die verbondsark ’n plek in die tempel gemaak. En in die ark is daar nog steeds die kliptafels wat die Here by Sinai gegee het toe Hy met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit het. Dit was nadat Hy hulle uit Egipte weggelei het.” Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.” “Here, my God, kan U regtig hier op aarde in die tempel woon? Nie eens die ganse hemel is vir U groot genoeg nie. Hoe kan hierdie geboutjie, hierdie tempel wat ek gebou het, dan ooit groot genoeg vir U wees? Here my God, voor U is ek niks. Luister tog na my woorde en verhoor vandag my gebed. Here, beskerm hierdie gebou dag en nag. Dit is tog die plek wat U gekies het; die plek waar U wou hê ons U moes aanbid. Hoor elke keer my gebed as ek my gesig na hierdie tempel toe draai. Hoor ook die smekinge van u mense wanneer hulle in die rigting van die tempel kyk en bid. Hoor tog ons gebede in u hemelse woonplek en vergewe ons ons sondes. “Wanneer iemand van ’n oortreding teenoor sy naaste beskuldig word en hy sweer by die altaar in hierdie tempel dat hy onskuldig is, luister dan vanuit u hemelse woonplek en oordeel U self. Straf die skuldige en spreek die onskuldige vry. “Wanneer u volk, Israel, ’n geveg verloor omdat hulle aan U ontrou was, maar hulle bely hulle sondes vol berou hier by die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en maak hulle weer gelukkig in hierdie land wat U lank gelede al aan hulle voorouers beloof het. “Wanneer U die reën terughou omdat u mense gesondig het, maar hulle bely hulle foute en bid met hulle gesig in die rigting van die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe die koning en die volk hulle sondes en leer hulle om die regte dinge te doen. Gee dan reën vir u land; die land wat U aan Israel as permanente woonplek gegee het. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af, hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid, hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word. “Wanneer Israel op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in ’n vreemde land terwyl hulle hulle gesig in die rigting van die tempel draai, luister dan na hulle gebede in u hemelse woonplek en laat hulle die vyand verslaan. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U, luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede. As hulle in daardie land waarlik berou het en hulle bid met hulle gesig na hierdie land, hierdie stad en hierdie tempel toe wat ek vir U gebou het, luister dan na hulle gebede. Vergewe hulle en wees opnuut weer lief vir u mense. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.” Salomo het opgestaan. Hy was nog die hele tyd voor die altaar, waar hy op sy knieë en met uitgestrekte arms gebid het. Toe het hy hardop gebid dat die Here tog naby moes wees aan almal wat daar saamgekom het. Hy het ook gesê: “Loof die Here wat ons ’n land en vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het. Mag die Here so naby aan ons wees soos Hy destyds aan ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit sommer los of verlaat nie. Mag Hy ons gehoorsaam maak sodat ons sal doen wat Hy vra, sodat ons uit liefde vir Hom sy gebooie en sy wette sal uitleef. Mag die Here tog altyd hierdie gebed onthou en alles wat ek gevra het, waar maak. Mag Hy sy volk Israel en die koning altyd liefhê en mag Hy elke dag vir hulle sorg. As dit gebeur, sal al die volke van die wêreld begin besef dat die Here God is en dat daar niemand anders soos Hy is nie. Mag julle, die volk van die Here, altyd aan Hom getrou wees. Mag julle, soos vandag, ook môre en oormôre na die Here se wil in sy gebooie en al sy wette luister.” Toe het koning Salomo en al die mense uit blydskap en dankbaarheid vir die Here begin offer. Salomo alleen het 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het Salomo en al die mense die tempel daardie dag ingewy. Op daardie dag het Salomo die middelgedeelte van die voorhof, wat reg voor die huis van die Here was, gewy en toe daar begin offer. Hy het brandoffers, graanoffers en die vetgedeeltes van die diere daar verbrand. Salomo het dit so gedoen omdat die bronsaltaar te klein was vir al hierdie offers. Salomo en die hele Israel het sewe dae lank feesgevier. Die mense het van ver af gekom. Selfs van die Lebo-Hamat-pas in die noorde en die Egiptiese grens in die suide was daar mense. Hulle was almal so gelukkig en bly dat hulle sommer nog sewe dae aangehou het. Hulle het altesaam veertien dae lank feesgevier. Daarna het Salomo die mense huis toe gestuur. Almal was vol lof vir Salomo en vir alles wat hy gedoen het. Die volk is met groot blydskap weg omdat hulle kon sien hoe die Here se beloftes aan Dawid waar geword het. Nadat Salomo die tempel, sy paleis en die ander geboue opgerig het, het die Here weer aan hom verskyn, presies soos destyds by Gibeon. Die Here het vir hom gesê: “Ek het gehoor wat jy alles in jou gebed gevra het. Ek sal vir hierdie plek sorg, want dit is waar Ek vir altyd aanbid gaan word. Dag vir dag sal Ek dit oppas. As jy My sal liefhê en met jou hele wese sal dien soos jou pa Dawid gedoen het, sal dit met jou baie goed gaan. “As jy na my wil luister en my gebooie uitleef, sal Ek my belofte aan Dawid hou en sal een van sy nageslag altyd oor Israel regeer. As jy of iemand uit jou nageslag My nie meer liefhet nie en julle daarom ook nie meer aan My steur nie en ander gode in my plek dien, sal Ek my volk Israel van hierdie grond wat Ek aan hulle gegee het, wegjaag. Ek sal padgee van hierdie tempel af en wanneer hulle my daar aanbid, sal Ek net nie daar wees nie. “Al die aarde se mense sal Israel dan begin spot en verag. Wanneer die tempel tot op die grond afgebreek is, sal elke verbyganger met skok vra: ‘Waarom het die Here dit aan die land en die tempel en sy mense gedoen?’ “Dan sal die mense sê: ‘Dit is omdat hulle die Here hulle God verlaat het. Dit is omdat hulle die God wat hulle destyds uit Egipte gelei het, nie meer liefhet nie. Hulle het voor ander gode gebuig en hulle gedien. Dit is waarom God al hierdie verskriklike dinge met hulle laat gebeur het.’” Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel en die paleis te bou. Koning Hiram van Tirus het al die seder- en dennehout verskaf, asook al die goud wat Salomo nodig gehad het. Nadat alles voltooi is, het Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram gegee. Hiram het opgewonde na die stede gaan kyk, maar was diep teleurgesteld. Hy het nie van een van hulle gehou nie. Hiram het toe vir Salomo gesê: “My vriend, hierdie stede beteken niks, hulle het geen waarde nie.” Vandag nog word hierdie gebied “Kabul” of “Nikswerd” genoem. Hiram was baie ongelukkig, maar hy het die stede aanvaar. Hy het ook nog 4 000 kilogram goud aan Salomo gestuur. Koning Salomo het mense gedwing om die tempel en die paleis te bou. Hy het hulle ook gedwing om die oostekant van die stad met grond op te vul en ’n stadsmuur te bou. Met dwangarbeiders het hy ook die stede Hasor, Megiddo en Geser herbou. Lank gelede het die Egiptiese koning die stad Geser aangeval, dit ingeneem en toe groot dele daarvan afgebrand. Die koning het dit vir Salomo gegee die dag toe hy met sy dogter getroud is. Salomo het dit aanvaar en Geser heeltemal herbou. Hy het egter ook Bet-Horon-Onder, Baälat, Tamar in die Judese woestyn, sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie. Onder hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Vandag nog is hulle nageslag die land se werkers. Salomo het nooit Israeliete as dwangarbeiders gebruik nie. Hulle was die soldate, die offisiere, die generaals, die drywers van die oorlogswaens en die ruiters. Ongeveer 550 amptenare het oor die dwangarbeiders toesig gehou, asook oor hulle bouwerk op verskillende plekke. Nadat Salomo se Egiptiese vrou, die dogter van die Egiptiese koning, uit die ou Dawidstad na haar nuwe huis getrek het, het Salomo begin om die oostelike deel van die stad met grond op te vul en ’n terras te bou. Salomo het gereeld drie keer per jaar, tydens pase, pinkster en die loofhuttefees, brandoffers en dankoffers op die altaar geoffer wat hy vir die Here gebou het. Salomo het al sy verantwoordelikhede by die tempel nagekom. Hy het ook vir hom ’n hele skeepsvloot by Esjon-Geber digby Elat aan die kus van die Golf van Akaba in Edom laat bou. Koning Hiram het toe van sy mees ervare skeepslui gestuur om saam met Salomo se manne te werk. Hulle het Ofir toe geseil en 14 000 kilogram goud vir Salomo teruggebring. Die koningin van Skeba het van Salomo en die Naam van die Here gehoor en besluit om hom in Jerusalem te gaan besoek. Sy wou hom met moeilike vrae toets. Sy het ’n groot groep mense saam met haar Jerusalem toe gebring. Haar kamele was swaar gelaai met speserye, juwele en ’n groot klomp goud. Toe sy Salomo uiteindelik ontmoet, het sy hom met allerlei vrae bestook. Vir Salomo was alles maklik. Hy het haar vrae met die grootste gemak beantwoord. Toe die koningin van Skeba al Salomo se wysheid hoor en sy tempel sien, het sy amper geen woorde meer gehad nie. Toe sy die kos op die tafel sien, asook die wonings van sy amptenare, die vermoë van sy paleispersoneel om goed te organiseer, die klere van sy amptenare, die bediening van sy kelners, en die offers wat hy by die tempel gebring het, het sy na haar asem gesnak. Sy het vir Salomo gesê: “Alles wat ek van u in my eie land gehoor het, is waar. Alles is presies soos die mense gesê het. Ek moes self kom kyk, anders sou ek dit nooit geglo het nie. En ek het skaars nog die helfte gehoor. U kennis en u rykdom is nog baie groter as wat hulle my vertel het. Hoe gelukkig is u mense darem nie! Hoe gelukkig is die amptenare nie wat elke dag saam met u werk en al u wysheid hoor nie! Prys die Here, u God! Hy het u so liefgehad dat Hy u koning van Israel gemaak het. Hy het ook sy volk Israel so liefgehad dat Hy u as koning aangestel het sodat u vir hulle kan leer hoe om reg te leef.” Sy het toe vir die koning al die geskenke gegee wat sy saamgebring het: 4  000 kilogram goud en ’n groot hoeveelheid juwele en speserye. Niemand sou ooit weer soveel en sulke goeie geskenke ontvang nie. (Hiram se vloot wat vir Salomo goud uit Ofir gebring het, het ook ’n groot hoeveelheid jenewerhout en juwele saamgebring. Salomo het van die jenewerhout relings vir die tempel en die paleis gemaak. Hy het ook vir die tempelsangers harpe en liere van die hout laat maak. Dit was die allerbeste jenewerhout wat nog ooit na Israel toe gebring is. Hierna sou daar ook nooit weer sulke kosbare hout in Israel wees nie.) Koning Salomo het die koningin van Skeba alles gegee wat sy begeer en gevra het. Dit is nou behalwe die geskenke wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe met haar hele geselskap daar weg en het na die land van Skeba teruggegaan. Elke jaar het Salomo ongeveer 23 000 kilogram goud ontvang. Dit is afgesien van die handelaars se belasting, asook die geld wat die Arabiese konings en die twaalf streke van Israel moes betaal. Salomo het 200 groot skilde gemaak en elkeen met sewe kilogram goud laat oortrek. Hy het ook 300 kleiner skilde gemaak en elkeen met amper twee kilogram goud oorgetrek. Salomo het al hierdie skilde aan die mure van die Libanonsbosgebou gehang. Verder het die koning ’n groot troon laat maak. ’n Deel daarvan het hy met ivoor oorgetrek en die res met die allersuiwerste goud. Die troon het ses trappe gehad waarmee ’n mens tot bo kon loop. Die troon se kopstuk was rond en by elke armleuning het daar ’n groot beeld van ’n leeu gestaan. Twaalf beelde van leeus is aan weerskante van die ses trappe geplaas. Nêrens in die wêreld was daar so ’n troon nie. Al koning Salomo se drinkbekers is van goud gemaak en alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van suiwer goud. Geen silwer is ooit gebruik nie, want silwer was in Salomo se dae waardeloos. Salomo het ook ’n uitstekende vloot gehad. Sy skepe het altyd saam met Hiram se vloot na ver plekke geseil. Elke drie jaar het hulle dan met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane teruggekom. Koning Salomo was ryker en slimmer as enige ander koning. Die hele wêreld wou hom kom besoek. Hulle wou na al die wysheid wat die Here vir hom gegee het, kom luister. Elkeen wat gekom het, het vir hom ’n geskenk saamgebring: allerlei goed wat van goud en silwer gemaak is, klere, wapens, speserye, perde en donkies. Dit het jaar na jaar so aangehou. Salomo het ook ’n groot weermag van 1 400 strydwaens en 12 000 ruiters opgebou. ’n Deel van die weermag was in Jerusalem en die res op ander plekke. In Salomo se tyd het silwer in Jerusalem geen waarde gehad nie. Dit was so alledaags soos klippe. En sederhout was so gewoon soos die wildevyebome in die Laeveld. Die koning se manne het vir hom perde uit Egipte en Kewé ingevoer. Hulle het dit in Kewé vir ’n goeie prys gekry en dan Jerusalem toe gebring. Strydwaens is ook uit Egipte ingevoer. Salomo se handelaars het die perde en die strydwaens weer aan die Hetitiese en Aramese konings verkoop. ’n Wa het amper sewe, en ’n perd amper twee kilogram silwer gekos. Salomo was lief vir buitelandse vroue en hy het baie van hulle gehad. Behalwe die dogter van die Egiptiese koning was hy ook met vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en die land van die Hetiete getroud. Salomo het vir hulle lief geraak en met hulle getrou al was die Here daarteen gekant. Hy het Israel altyd gewaarsku om nie met dié vroue te trou nie. Hulle kon Israel baie maklik van die Here af wegrokkel en hulle ander gode laat aanbid. Salomo het met 700 prinsesse van ander lande getrou en dan het hy ook nog 300 byvroue gehad. Hulle het sy hart van die Here af laat wegdraai. Teen die tyd dat hy ’n ou man was, het hy lankal reeds ’n spul vreemde gode aanbid. Salomo het toe nie meer die Here so liefgehad soos sy pa, Dawid, nie. Hy het selfs vir Astarte, die godin van Sidon, en vir Milkom, die aaklige god van Ammon, aanbid. Salomo het teen die Here gesondig. Hy was nie so getrou aan die Here soos sy pa, Dawid, nie. Op die berg oos van Jerusalem het hy ’n plek gebou waar Kemos, die verskriklike god van Moab, en Milkom, daardie aaklige god van Ammon, aanbid kon word. Hy het ook plekke gebou waar sy buitelandse vroue vir hulle gode offers kon bring en wierook kon brand. Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie. Salomo was glad nie meer in die Here geïnteresseerd nie; hy het sy hart vir die ander gode gegee. Die Here was seergemaak en kwaad vir Salomo. Hy het toe vir hom gesê: “Jy het doelbewus jou verhouding met My verbreek. Jy wil nie meer my gebooie gehoorsaam nie. Ek gaan daarom jou hele koninkryk van jou af wegneem en dit vir een van jou amptenare gee. Ter wille van jou pa, Dawid, sal ek dit nie nou doen terwyl jy nog leef nie. Dit sal gebeur wanneer jou seun begin regeer. Ek sal egter nie die hele koninkryk wegneem nie. Ek sal een stam, die stam van Juda, ter wille van Dawid en ter wille van Jerusalem, waarin Ek aanbid word, laat oorbly.” Deur die Here se toedoen het Hadad teen Salomo in opstand gekom. Hadad was deel van die koningshuis in Edom. Lank gelede, toe Dawid Edom oorwin het, het Joab, die hoof van sy leërmag, daarheen gegaan en al die mans doodgemaak en begrawe. Joab en die hele Israel het ses maande lank ’n guerrilla-oorlog teen Edom gevoer en hulle weermag vernietig. Hadad en ’n klompie van sy pa se werkers het egter daarin geslaag om na Egipte te ontsnap. Hadad was in daardie stadium nog maar ’n kind. Hulle het deur Midian by Paran aangekom. Daar het ander mense ook by hulle aangesluit en hulle is saam daar weg. Toe hulle in Egipte aankom, is hulle reguit na die koning toe. Die koning het vir Hadad ’n stuk grond met ’n huis gegee en hom van kos voorsien. Hadad en die koning het goeie vriende geword. Die koning het selfs sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes, vir Hadad as vrou gegee. Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef. Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.” “Hoekom wil jy teruggaan?” het die koning verbaas gevra. “Het ek dan iets verkeerds gedoen?” “Nee,” het Hadad gesê, “laat my asseblief net gaan.” Hadad is daar weg. Hy het toe die koning van Edom geword. Hadad het Israel gehaat. Reson seun van Eljada het hom ook teen Salomo verset. Reson het vir koning Hadad-Eser van Soba gewerk, maar op ’n dag het hy in opstand gekom en is van die koning af weg. Dit het in die tyd gebeur toe Dawid vir Hadad-Eser verslaan en sy Siriese bondgenote vernietig het. Reson en sy manne is toe vinnig daar weg en het in Damaskus gaan bly. Daar het hulle hom koning van Sirië gemaak. Reson het Israel gehaat en was ’n geswore vyand van Salomo. Nog iemand wat teen Salomo gerebelleer het, was Jerobeam. Hy was die seun van Nebat, ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee. Salomo het die oostekant van Jerusalem met grond opgevul en was besig om die stadsmuur te herstel. Jerobeam het ook daar gewerk. Hy was jonk, ambisieus en hardwerkend. Salomo het dit raakgesien en Jerobeam oor die dwangarbeiders aangestel. Hy moes die mense van Manasse en Efraim (dit is die Josefstam) dwing om vir Salomo te werk. Op ’n dag was Jerobeam uit Jerusalem na die noorde op pad toe hy skielik die profeet Agija van Silo raakloop. Hulle het lank alleen in die oop stuk veld gestaan en gesels. Agija het sy nuwe mantel uitgetrek en dit in twaalf stukke begin skeur. “Vat vir jou tien stukke,” het hy vir Jerobeam gesê. “Die Here, die God van Israel, sê vandag vir jou: ‘Ek is op die punt om Salomo se koninkryk van twaalf stamme van hom af weg te skeur en tien daarvan vir jou te gee. Salomo se koninkryk sal dan uit net een stam, die stam van Juda, bestaan. Ter wille van Dawid, en omdat Ek Jerusalem bo alle plekke gekies het om in te woon, sal Salomo se nageslag oor hierdie een stam regeer. Ek doen al hierdie dinge omdat Salomo My nie meer liefhet nie. Hy het ander gode begin aanbid. Gode soos Astarte die godin van Sidon, Kemos die god van Moab en Milkom die god van Ammon. Salomo het nie meer na My geluister nie. Hy het nie soos sy pa, Dawid, volgens my wil geleef nie. Terwyl Salomo nog leef, gaan daar niks gebeur nie. Sy koninkryk sal nie tydens sy regering verdeel word nie. Ek doen dit ter wille van Dawid wat Ek gekies het, wat vir My lief was en wat na my gebooie en wette geluister het. Na Salomo se dood sal Ek die koninkryk van sy seun Rehabeam verdeel en tien stamme vir jou gee. Een stam sal nog oorbly en Salomo se nageslag sal daaroor regeer. Soos Ek belowe het, sal daar altyd een van Dawid se nageslag in Jerusalem regeer. Jerusalem is die stad wat Ek gekies het en dit is die plek waar Ek aanbid word. “‘Jerobeam, Ek sal jou die koning van Israel maak en jy sal oor die hele gebied van die tien stamme regeer. As jy mooi na My luister en volgens my wil leef, sal dit met jou goed gaan. As jy ’n koning soos Dawid is, sal Ek altyd naby aan jou wees. Ek sal jou koningskap voorspoedig maak en Ek sal sorg dat iemand uit jou nageslag altyd oor Israel regeer. Ek sal vir jou doen wat Ek vir Dawid gedoen het. Salomo se lewe het begin skeefloop en daarom gaan Ek die nageslag van Dawid straf. Ek sal egter nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie.’” Toe Salomo hoor wat met Jerobeam gebeur het, wou hy hom net daar doodmaak. Maar Jerobeam het na koning Sisak van Egipte toe gevlug. Daar het hy gebly totdat hy gehoor het Salomo is dood. Hulle het toe Salomo se hele lewensgeskiedenis beskryf. Besonderhede oor sy lewe, sy wysheid en alles wat hy gedoen het, is in ’n boek Die lewe en werk van Salomo opgeteken. Hy het 40 jaar lank in Jerusalem as koning regeer. Salomo is dood en is in Jerusalem, die stad van Dawid, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom opgevolg. Rehabeam is na Sigem toe. Al die mense uit die noorde van die land het daar bymekaargekom om hom te kroon. Toe Jerobeam die seun van Nebat van hierdie groot volksbyeenkoms hoor, is hy onmiddellik uit Egipte weg. Hy het destyds soontoe gevlug omdat Salomo hom wou doodmaak. Van die noorde se mense het hom ook van die byeenkoms laat weet. Jerobeam het teruggekom en is saam met al die mense na Rehabeam toe. By Sigem het die mense toe vir die koning gesê: “Rehabeam, u pa het ons baie sleg behandel. Hy het die lewe vir ons regtig moeilik gemaak. As u nou ons las ’n bietjie ligter en die lewe vir ons ’n bietjie makliker gaan maak, sal ons u getrou dien.” Rehabeam het egter gesê: “Ek wil eers daaroor gaan dink. Kom oor drie dae terug en dan sal ek julle sê wat ek besluit het.” Rehabeam het toe met die ouer en ervare mans wat nog vir sy pa gewerk het, gaan gesels. “Wat dink julle moet ek vir die mense sê?” het hy gevra. Hulle het geantwoord: “As u werklik vir hierdie mense omgee, maak dan die lewe vir hulle makliker, en hulle sal u altyd getrou dien.” Rehabeam het egter die ouer mans se raad summier verwerp. Hy wou eerder hoor wat die jonger mans sê, die mans wat saam met hom grootgeword het en wat nou belangrike posisies beklee het. “Hoe dink julle moet ek die mense antwoord?” het Rehabeam hulle gevra. “Hulle vra dat ek hulle las moet ligter maak, maar wat sê julle daarvan?” Die jong mans het geantwoord: “Sê vir hulle: ‘My pinkie is dikker as my pa se middel.’ En as hulle vir jou vra wat dit beteken, moet jy sê: ‘My pa het die lewe vir julle moeilik gemaak, maar ek gaan dit nog moeiliker maak; hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek sal julle met gesels slaan.’” Drie dae later het Jerobeam en die noorde se mense weer bymekaargekom. Hulle was gretig om te hoor wat Rehabeam gaan antwoord. Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat. Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.” Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie. Toe die noorde se mense Rehabeam se storie hoor, het hulle almal begin skree: “Weg met Dawid en sy nageslag! Ons is nie deel van Dawid se mense nie! Wat het hulle al ooit vir ons gedoen! Israel, kom ons gaan huis toe. Laat Rehabeam maar self sien en kom klaar.” So het die mense van Israel hulle teen Rehabeam verset. Israel het toe hulle eie pad geloop. Al wat vir Rehabeam oorgebly het, was die een stam, die stam van Juda in die suide van die land. Rehabeam het vir Adoniram, die man wat Salomo nog oor die dwangarbeiders aangestel het, gestuur om met Israel te gaan praat. Hulle het hom so gehaat dat hulle hom sommer met klippe doodgegooi het. Toe Rehabeam sien wat gebeur, moes hy vinnig voor die skare padgee. Hy het net-net weggekom en is terug Jerusalem toe. Van daardie dag af wou Israel niks meer met die koningshuis van Dawid in Jerusalem te make hê nie. Nadat Jerobeam se terugkeer uit Egipte oral bekend geword het, het die mense hom na ’n groot volksbyeenkoms uitgenooi. Daar het hulle hom toe voor almal koning gemaak. So het Jerobeam die nuwe koning van Israel geword. In die suide het net die stam van Juda nog aan die huis van Dawid behoort. Rehabeam was woedend. Hy wou sy verlore koninkryk met alle geweld herwin. Terug in Jerusalem het hy 180 000 jong soldate uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep. Maar die Here het vir die profeet Semaja gesê: “Gaan na Rehabeam, die seun van Salomo en die koning van Juda, en na die twee stamme Juda en Benjamin toe en sê vir hulle: ‘Moenie teen julle broers in die noorde gaan veg nie. Gaan liewer terug, want alles het volgens my wil gebeur.’” Al die manskappe het net daar omgedraai en teruggegaan huis toe. Jerobeam het Sigem op die Efraimsberg herbou en daar gaan bly. Na ’n ruk is hy daar weg en het in Penuël gaan bly. Jerobeam het oor alles nagedink en toe vir homself gesê: “Die kans is groot dat ek my koninkryk kan verloor. As hierdie volk elke keer Jerusalem toe moet gaan om daar in die tempel te gaan offer, sal hulle weer vir Rehabeam van Juda wil dien. Dit sal my einde beteken. Hulle sal my doodmaak en na Juda terugkeer.” Nadat Jerobeam ’n lang ruk daaroor gedink het, het hy besluit om twee goue kalwers te maak. Toe het hy vir sy mense gesê: “Julle het nou lank genoeg in Jerusalem gaan offer. Kyk, hier is die gode wat julle uit Egipte gelei het.” Hy het een van die goue kalwers in Bet-El en die ander een in Dan gesit. Wat Jerobeam gedoen het, was verkeerd. Die volk het gesondig deur in Bet-El en Dan te gaan offer. Jerobeam het nog verder gegaan en offerplekke op hoë plekke in die berge gebou. Hy het ook priesters aangestel wat nie eens Leviete was nie. Jerobeam het ook ’n spesiale feesdag ingestel, nes die feesdag in Juda. Dit is op die vyftiende dag van die agtste maand gevier en almal moes dit bywoon. Baie offers is op hierdie feesdag gebring vir die beelde wat hy laat maak het. En hy het ook die priesters wat hy self aangestel het daar laat optree. Jerobeam het hierdie feesdag ingestel om te keer dat sy mense Jerusalem toe gaan. Op die vyftiende dag het hy Bet-El toe gegaan en by die altaar gaan staan. Net toe hy die offervuur wou aansteek, het die profeet daar aangekom. Die Here het ’n profeet uit Juda na Israel gestuur. Toe hy Bet-El binnekom, het Jerobeam net by die altaar gaan staan en die offervuur aangesteek. Die profeet het toe op bevel van die Here vir die altaar gesê: “Altaar, die Here sê daar sal op jou nog verskriklike dinge gebeur. Uit Dawid se nageslag sal iemand gebore word met die naam Josia. En op jou sal hy die priesters doodmaak wat hier geoffer het. Op jou sal hy ook die bene van baie mense verbrand.” Die profeet het verder gesê: “Iets ergers gaan nog gebeur. Dit sal die teken wees dat die Here gepraat het. Hierdie altaar sal in ’n klomp stukke breek en die as van al die offers sal oral deur die wind verstrooi word.” Toe Jerobeam dit hoor, was hy woedend en het gesê: “Gryp die man.” Op daardie oomblik het die koning se hand heeltemal styf geword. Hy kon dit nie weer terugtrek nie. Skielik het die altaar ineengestort en die as van die offers is oral versprei, net soos die profeet op bevel van die Here gesê het. Jerobeam het benoud vir die profeet gesê: “Vra asseblief die Here jou God om my hand gesond te maak.” Die profeet het die Here gesmeek en die koning se hand was weer normaal. Jerobeam was baie bly en het vir die profeet gesê: “Kom saam met my huis toe. Daar kan jy ’n bietjie rus en ek wil sommer ook vir jou ’n geskenk gee.” “Nee, Meneer,” het die profeet gesê, “al gee u my ook die helfte van u besittings, ek gaan nie saam met u nie. Ek mag hier niks eet of drink nie.” Die profeet het presies gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy moes niks van die koning vat nie en hy moes ook met ’n ander pad teruggaan huis toe. Hy is toe met ’n ander pad van Bet-El af weg. Daar was ook ’n ander en ouer profeet in Bet-El. Sy seuns het hom alles vertel wat die profeet uit Juda gesê en gedoen het. “Watter pad het die man gevat?” het die ouer profeet gevra. Sy seuns het hom so vaagweg die pad beduie. Die ouer profeet se seuns moes dadelik vir hom ’n donkie opsaal en hy is toe agter die man uit Juda aan. Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra. “Ek is,” het hy gesê. “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.” “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie. Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.” Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg. Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat. “Jy het verkeerd gedoen,” het die Here gesê. ‘‘Jy het nie gedoen wat Ek vir jou gesê het nie. Jy het sommerso saam met hierdie man teruggegaan en in sy huis geëet en water gedrink. Jy het jou deur die ou man laat mislei. Binnekort sal jy sterf en jy sal nie by jou mense begrawe word nie.” Nadat hulle klaar geëet het, het die ou man die profeet uit Juda se donkie opgesaal en hy is daar weg. Op pad het ’n leeu hom gevang en doodgebyt. Die Judese profeet het dood langs die pad gelê terwyl die donkie en die leeu langs sy lyk gestaan het. Mense wat verbygestap het, kon hulle oë nie glo nie. Langs die dooie man het die leeu en die donkie rustig gestaan. Hulle het dit toe oral in Bet-El loop en vertel. Toe die ouer profeet daarvan hoor, het hy gesê: “Dit is mos die man uit Juda wat nie gedoen het wat die Here vir hom gesê het nie. Vir sy straf het ’n leeu hom nou doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.” Hy het onmiddellik sy seuns beveel om vir hom ’n donkie op te saal. Na ’n ruk het hy by die plek aangekom. Die leeu en die donkie het nog steeds langs die dooie man gestaan. En die leeu het nie die man se liggaam verbrysel of die donkie opgevreet nie. Die ou man het die lyk op sy donkie gelaai en Bet-El toe gebring. Hy wou oor hom rou en hom begrawe. Hy het die man uit Juda in sy eie graf begrawe en hulle het oor hom getreur. Na ’n ruk het die ouer profeet vir sy seuns gesê: “Wanneer ek die dag doodgaan, moet julle my in dieselfde graf begrawe as die man uit Juda, want sy woorde oor die altaar in Bet-El en al die ander aanbiddingsplekke in Samaria sal nog waar word. Alles wat hy gesê het, het van die Here gekom.” Jerobeam het voortgeleef asof niks gebeur het nie. Hy het oral altare gebou en sommer enigiemand wat hy wou daar as priester aangestel. Jerobeam het verkeerd gedoen. Dit sou tot die ondergang van sy koninkryk lei. In dié tyd het Jerobeam se seun Abia baie ernstig siek geword. Sy toestand het dag vir dag versleg. Hy het toe sy vrou geroep en vir haar gesê: “Vermom jou en sorg dat niemand jou herken nie. Gaan dan Silo toe, want die profeet Agija bly daar. Hy is die man wat destyds gesê het ek sal die koning van Israel word. Vat tien brode, koeke en ’n kruik met heuning vir die man saam. En vra hom wat ons seun makeer en of hy gesond sal word.” Jerobeam se vrou is Silo toe en het die man besoek. Hy was al baie oud en al amper blind. Die Here het egter vir Agija gesê dat Jerobeam se vrou op pad was en dat sy hom oor hulle siek kind kom sien. Hy het ook vir Agija gesê hoe hy Jerobeam se vrou moet antwoord. Toe die vrou uiteindelik in Silo aankom, het sy haar as iemand anders voorgedoen. Toe Agija haar by die deur hoor, het hy gesê: “Kom in. Ek weet wie jy is. Jy is Jerobeam se vrou. Waarom maak jy of jy iemand anders is? Ek het baie slegte nuus vir jou. Gaan vertel vir Jerobeam wat die Here vir hom sê: ‘Van almal het Ek jou gekies. Ek het jou koning van Israel gemaak. Ek het die grootste deel van Dawid se koninkryk gevat en vir jou gegee. Tog is jy nie ’n man soos Dawid nie. Hy het My liefgehad en my wil met oorgawe gedoen. Maar jy het erger dinge gedoen as enigiemand voor jou. Jy het die rug vir My gedraai. Daarom het jy My verneder deur beelde van ander gode te maak. Met jou en jou familie gaan daar iets verskrikliks gebeur. Alle mans, oud en jonk, sal uitgewis word. Ek sal Jerobeam se familie wegvee soos ’n mens gemors wegvee. Dié wat in die stad sterf, sal deur honde verskeur word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur die voëls opgevreet word. Alles sal gebeur omdat Ek dit sê.”’ Agija het toe vir Jerobeam se vrou gesê: “U moet onmiddellik huis toe gaan. Sodra u die stad binnegaan, sal u seun sterf. Almal sal hartseer wees en oor u seun rou. Die Here het net in hom iets goeds gevind, en daarom sal hy ook die enigste van Jerobeam se kinders wees wat ooit in ’n familiegraf begrawe sal word. “Die Here gaan iemand anders as koning aanstel en hy sal Jerobeam se koningskap beëindig. Die Here gaan Israel so slaan dat hulle sal bewe soos ’n riet in ’n waterstroom. Dan sal Hy Israel wegvat van hierdie goeie grond wat Hy lank gelede aan hulle voorvaders gegee het. Hy sal hulle na ’n ver land anderkant die Eufraatrivier wegvoer. Alles sal presies so gebeur omdat hulle die Here verneder het deur beelde van Asjera te maak. Omdat Jerobeam sy mense verkeerde dinge laat doen het, sal die Here die rug vir Israel draai.” Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Net toe sy by die paleis instap, het haar kind gesterf. Soos die Here deur Agija gesê het, het die volk hom begrawe en oor die seun gerou. Alles oor Jerobeam se regering en sy oorloë is opgeteken in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings. Jerobeam het 22 jaar regeer. Hy het gesterf en is by sy familie begrawe. Sy seun Nadab het hom opgevolg. Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword. Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het net drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma, Maäka, was ’n dogter van Abisalom. Hy het dieselfde verkeerde dinge as sy pa, Rehabeam, gedoen. Hy het ook nie die Here so liefgehad soos sy oupagrootjie Dawid nie. Ter wille van Dawid het die Here vir Abia ’n seun gegee wat na hom kon regeer en Jerusalem kon beskerm. Behalwe vir die verkeerde daad teen Urija die Hetiet, het Dawid altyd die regte dinge in die oë van die Here gedoen. Abia en Jerobeam het heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Alles wat Abia gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings geskryf. Abia is dood en in Jerusalem begrawe. Sy seun Asa het hom opgevolg. Asa het in die twintigste jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het 41 jaar in Jerusalem regeer. Sy ouma Maäka was ’n dogter van Abisalom. Asa was anders as Abia. Hy het goeie dinge gedoen, net soos sy voorvader Dawid. Hy het alle manlike prostitute uit die land verban en die afgode van sy voorgangers verwoes. Hy het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder ontslaan omdat sy ’n groot en afskuwelike beeld van Asjera, die godin van vrugbaarheid, gemaak het. Asa het die ding afgebreek en in die Kidrondal verbrand. Asa was lief vir die Here, maar hy kon op die ou end nie daarin slaag om al die offerplekke op die hoogtes waar die volk so graag geoffer het te verwoes nie. Hy het al die goed wat sy pa aan die Here se diens gewy het, in die tempel gestoor. Asa het ook al die goue en silwervoorwerpe wat hy self aan die Here gewy het, in die tempel gaan bewaar. Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak. Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie. Asa het bang geword. Hy het toe al die goud en silwer wat in die tempel opgeberg is, asook alles wat hy in die paleis kon kry, bymekaargemaak en vir sy amptenare gegee. Hulle moes onmiddellik na Ben-Hadad, koning van Sirië, die seun van Tabrimmon en die kleinseun van Gesjon, wat in Damaskus woon, vertrek. Hulle moes namens Asa vir Ben-Hadad sê: “Daar is mos ’n ooreenkoms tussen ons twee, net soos daar ook een tussen ons pa’s was. Hier is vir u ’n geskenk van goud en silwer, maar ek vra dat u my moet help. Verbreek tog u ooreenkoms met Baesa sodat hy uit Juda sal padgee.” Ben-Hadad het ingestem en sy beste generaals en hulle leërs na Israel toe gestuur. Hulle het die dorpe van Israel aangeval. Hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäka verower, asook die hele Gennesaret en die land van Naftali. Toe Baesa hiervan hoor, het hy opgehou met die bouwerk in Rama en dadelik na Tirsa teruggegaan. Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou. Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het. Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg. In die tweede jaar van Asa van Juda se regering het Nadab koning van Israel geword. Nadab het net twee jaar regeer. Nadab het baie verkeerde dinge gedoen. Hy het sy pa se voorbeeld gevolg. Baesa, ’n seun van Agija uit die stam van Issaskar, het ’n komplot teen Nadab gesmee om hom uit die weg te ruim. Terwyl Nadab op ’n keer vir Gibbeton, ’n stad in die Filistynse gebied, beleër het, het Baesa hom oorval en vermoor. Dit het gedurende die derde jaar van koning Asa van Juda se regering gebeur. Baesa het in die plek van Nadab koning van Israel geword. Baesa het dadelik Jerobeam se familie stelselmatig begin uitmoor. Dit het natuurlik gebeur soos die Here ’n paar jaar tevore al deur sy profeet Agija van Silo voorspel het. Die hele Jerobeamfamilie is uitgewis. Nie een het oorgebly nie. Alles wat Nadab gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings geskryf. Tussen Asa van Juda en Baesa van Israel was daar gedurig oorlog. In die derde jaar van koning Asa van Juda se regering het Baesa, ’n seun van Agija uit Issaskar, koning van Israel geword. Hy het 24 jaar lank in Tirsa regeer. Soos koning Jerobeam voor hom het Baesa net verkeerd gedoen en het hy Israel die verderf in gelei. Die Here het met die profeet Jehu seun van Hanani gepraat, en Jehu het die boodskap aan Baesa gaan oordra. “Jy was niks, absoluut niks in my oë nie. Ek het jou uit die stof opgetel,” het die Here vir Baesa gesê. “Nogtans het Ek jou koning van Israel gemaak. Jy moes my mense lei, maar jy het Jerobeam se pad geloop en hulle verkeerde dinge laat doen. Hulle sonde het My baie kwaad gemaak. Ek sal daarom met jou maak soos met Jerobeam. Jou hele familie sal uitgewis word. Enigeen wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur aasvoëls verslind word.” Alles wat Baesa gedoen het, kan ’n mens in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan naslaan. Baesa is dood en in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom opgevolg. Die profeet Jehu het vir Baesa van die Here se planne met hom en sy familie vertel. Baesa se sonde het die Here kwaad gemaak. Hy het dieselfde pad as Jerobeam geloop. Boonop het hy Jerobeam se familie op ’n wrede manier vermoor. Baesa en sy familie sou ook uitgewis word. In die 26ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Ela die seun van Baesa koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gebly en twee jaar daar regeer. Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk. Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering. Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis. Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word. Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid. Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken. In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer. Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak. Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër. Toe Simri sien hy gaan die stryd verloor, het hy hom in die binneste deel van die paleis gaan toesluit en die gebou aan die brand gesteek. Hy het in die vuur doodgebrand. Simri het ’n wrede dood gesterf en ’n verskriklike prys vir sy sondes betaal. Soos Jerobeam het hy met al sy afgode die Here oneer aangedoen. Hy het Israel ook baie verkeerde dinge laat doen. Meer inligting oor al Simri se optrede, asook sy sameswering teen Ela, kan in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings nageslaan word. Die mense van Israel was verdeel. Die helfte wou Tibni, die seun van Ginat, hierna as koning hê, terwyl ander sterk ten gunste van Omri was. Gaandeweg het die Omrigroep sterker geword en na Tibni se skielike dood het Omri koning van die hele Israel geword. In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel. Op ’n dag het hy Samariaberg vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het die berg heeltemal herbou en dit Samaria genoem ter ere van die vorige eienaar, Semer. Omri het baie verkeerde dinge voor die Here gedoen. Hy was selfs erger as sy voorgangers. Soos Jerobeam voor hom het Omri ook die Here se Naam groot oneer aangedoen. Hy het Israel verlei om ander gode te dien en die Here, die God van Israel, te vergeet. Oor alles wat Omri gedoen het en sy dapper optrede kan ’n mens verder in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan lees. Omri het gesterf en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom opgevolg. In die 38ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Agab die seun van Omri koning geword. Hy het in Samaria gewoon en 22 jaar daar regeer. Agab was selfs nog erger as sy voorgangers, want hy het die allerverskriklikste goed gedoen. Dit was al erg genoeg dat Agab soos Jerobeam gemaak het, maar toe loop trou hy ook nog met Isebel. Sy was die dogter van Etbaäl, die koning van Sidon. Agab het toe voor Baäl gebuig en hom aanbid. Hy het selfs in Samaria ’n tempel vir Baäl gebou en ook ’n altaar ter ere van hom opgerig. Verder het hy ’n beeld van die godin Asjera gemaak. Agab was lief vir al hierdie afgode. Hy het die Here soos nog geen ander koning voor hom beledig nie. In Agab se dae het Giël, ’n man uit Bet-El se omgewing, die stad Jerigo herbou. Nadat die fondamente gelê is, het Giël se oudste seun, Abiram, skielik gesterf. Toe hy met die poorte klaar was, is sy jongste, Segub, onverwags dood. Lank gelede al het die Here dit deur Josua die seun van Nun voorspel. Toe het Elia, ’n profeet uit Tisbe in Gilead, vir koning Agab gesê: “So seker as wat die Here, die God van Israel wat ek dien, leef, so seker sal daar geen dou of reën in die volgende jaar of wat val sonder dat ek so sê nie.” Die Here het vir Elia gesê: “Gaan weg van hierdie plek af en loop ooswaarts totdat jy by die Kritspruit, oos van die Jordaan, kom en kruip dan daar vir ’n ruk weg. Jy kan uit die spruit water drink, terwyl die kraaie elke dag vir jou op my bevel kos sal bring.” Elia het na die Here geluister en na die Kritspruit aan die Oos-Jordaan gestap. Elke oggend en elke aand het die kraaie vir hom brood en vleis gebring. Elia het die water van die spruit gedrink. Na ’n ruk het die spruit opgedroog, want dit het nog nie gereën nie. Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan na Sarfat toe, naby Sidon. Bly ’n rukkie daar. In Sarfat sal ’n weduwee elke dag vir jou sorg.” Elia is toe na Sarfat toe. Net toe hy die stad binnekom, sien hy ’n weduwee wat hout kap. Hy het haar nader geroep en gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water.” Terwyl sy wegstap, het Elia bygevoeg: “En sommer ook ’n stukkie brood, asseblief.” Maar die vrou het geantwoord: “Meneer, ek sweer voor God dat ek niks brood het nie. Daar is nog net ’n bietjie meel in die blik en ’n paar druppels olie in die kan. Ek het hierheen gekom om ’n paar stukkies hout vir ’n vuurtjie te kap sodat ek vir my en my seun ’n laaste stukkie brood kan maak. As dit klaar is, is daar niks meer nie. Dan moet ons maar op die dood wag.” “Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê. “Gaan bak maar die brood en as dit klaar is, bring eers vir my ’n klein stukkie. Jy en jou seun kan dan die res kry. Moenie bang wees nie, want die Here het vir my gesê dat jou meelblik en jou oliekan nie sal leeg word nie totdat Hy weer reën gestuur het.” Die weduwee het gedoen soos Elia gesê het. Daar was elke dag oorgenoeg kos vir hulle al drie. Soos die Here belowe het, was die meelblik nooit leeg nie en was daar altyd olie in die kan. Na ’n ruk het die weduwee se seun baie siek geword. Sy koors het erger geword en later is hy dood. “Meneer, wat het u my aangedoen?” het die vrou gesê. “Ek het u in my huis ingenooi, maar toe het u vir God van al my sondes vertel; daarom is my kind dood.” “Gee die kind vir my,” het Elia gesê. Toe het Elia die kind van haar skoot af opgetel, hom na sy kamer op die boonste verdieping gedra en op sy bed neergelê. Elia het gekniel en toe hardop gebid: “Here my God, waarom het U dit laat gebeur? Hierdie vrou was baie goed vir my. Sy het nog elke dag vir my gesorg. Waarom het U haar kind laat sterf?” Elia het toe drie keer op die kind gaan lê en gebid: “Here my God, ek smeek U, laat die kind tog leef.” Die Here het toe Elia se gebed verhoor en die kind het weer begin leef. Elia het die kind aan die hand gevat en hulle is met die trap af tot by die weduwee. Elia het vir haar gesê: “Mevrou, hier is jou kind. Hy leef.” “Nou weet ek dat die Here u gestuur het en dat Hy deur u praat,” het die weduwee gesê. Eers in die derde jaar van die droogte het die Here vir Elia gesê: “Gaan na Agab toe en sê vir hom dat Ek dit weer sal laat reën.” Elia is na Agab in Samaria toe, waar die hongersnood op sy ergste was. Agab het intussen sy paleishoof, Obadja, ontbied. Obadja was lief vir die Here. (Toe Isebel op ’n keer die Here se profete wreed vervolg het, het Obadja 100 van hulle versteek. Hy het hulle in twee groepe van 50 elk in spelonke weggesteek en elke dag vir hulle kos en water gestuur.) Agab het vir Obadja gesê hulle moet deur die hele land reis en by elke fontein en spruit vir ’n groenigheidjie gaan soek. As hulle genoeg kon kry, was dit nie nodig om al die perde en muile dood te maak nie. Hulle het toe die land in twee verdeel. Agab het in die een deel en Obadja in die ander deel gaan soek. Terwyl Obadja nog so ry, sien hy skielik ’n man in die verte. Toe hy naby kom, het hy die man herken, voor hom op sy knieë neergeval en gesê: “Meneer Elia, is dit werklik u?” “Ja, dit is ek,” het Elia gesê. “Gaan sê vir Agab ek is terug.” “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” het Obadja gesê. “Agab sal my in die tronk stop en my doodmaak as ek dit vir hom sê. Die Here weet dat ek die waarheid praat. Agab soek oral na u. Daar is nie ’n land of volk waar hy nie gesoek het nie. Elke koning moes sweer dat hy u nie êrens wegsteek nie. En nou sê u ek moet vir die koning gaan sê u is hier. Sê nou ek gaan, en net as ek my rug draai, neem die Gees van die Here u weg na wie weet waar! Wat dan? As ek vir Agab sê u wag hier, maar as hy kom, is u weg, maak hy my op die plek dood. Nee, meneer Elia, ek doen dit nie. Ek het ook die Here lief en dien Hom van my kleintyd af, maar dit doen ek nie. Miskien weet u dit nie, maar toe Isebel destyds die Here se profete vermoor het, het ek 100 van hulle in twee groepe van 50 elk in ’n spelonk weggesteek. Elke dag het ek vir hulle brood en water laat kry. En nou kom vra u my nog om vir die koning te gaan sê u is hier. Hy maak my met sy eie hande dood! Nee, Meneer!” “Ek belowe jou in die Naam van die magtige Here wat ek dien dat ek net hier vir Agab sal wag,” het Elia gesê. Obadja is daar weg en het vir Agab gaan sê waar Elia is. Agab is onmiddellik na Elia toe. Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.” “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het. Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.” Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom. Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie. “Ek is die enigste profeet van die Here wat vandag hier is terwyl hier 450 Baälprofete teenwoordig is,” het Elia gesê. “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie. Laat die Baälprofete dan vir Baäl vra om die vuur aan te steek en ek sal die Here vra. Wie die vuur aansteek, is die enigste ware God.” Die volk het hierdie voorstel van Elia aanvaar. Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.” Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.” Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.” Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog. Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!” Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word. Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.” Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit. Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk. Toe hy die sewende keer weer gaan kyk, het hy iets gesien. “Meneer,” het hy gesê, “ek sien ’n wolkie so groot soos ’n man se hand. Dit kom van die see se kant af.” Elia het vir hom gesê: “Gaan sê gou vir die koning hy moet vinnig huis toe ry anders gaan hy natreën.” Skielik was die hemel vol swart wolke en ’n groot donderstorm het losgebars. Agab is net betyds in sy wa terug Jisreël toe. Die Here het Elia wonderlike krag gegee sodat hy sy lang kleed om sy heupe vasgebind het en tot by die afdraaipad na Jisreël toe voor Agab se wa uit gehardloop het. Agab het vir sy vrou Isebel vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die Baälprofete doodgemaak het. Isebel was woedend. Sy het toe vir Elia ’n boodskap gestuur: “As ek jou nie binne 24 uur doodmaak soos jy die Baälprofete doodgemaak het nie, moet die gode my maar laat sterf.” Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.” Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.” Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.” Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?” Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.” “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister. Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan. ’n Stem het hom gevra: “Elia, wat maak jy hier?” Hy het geantwoord: “Here, U ken my. My hele lewe lank dien ek met groot ywer nog net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare waar U aanbid word, vernietig en al u profete vermoor. Nog net ek het oorgebly en nou soek hulle my lewe ook. Dit is waarom ek besluit het om te vlug.” “Gaan terug,” het die Here vir Elia gesê. “Op pad moet jy deur die woestyn tot by Damaskus gaan en daar moet jy vir Gasael as die nuwe koning van Aram aanwys. Verder moet jy na Jehu, die seun van Nimsi, gaan soek en hom met olie salf as teken dat hy die nuwe koning van Israel sal wees. Dan moet jy na Elisa seun van Safat uit Abel-Megola toe gaan. Hy is jou opvolger en jy moet hom ook salf as teken dat hy by jou gaan oorneem. “Hierdie drie persone sal die ontroue Israel straf. Wie van Gasael ontsnap, sal deur Jehu doodgemaak word. En wie Jehu ontglip, sal met Elisa te doen kry. Sewe duisend gelowiges sal egter oorbly. Dit is hulle wat nie die knie voor Baäl gebuig en nie sy beeld gesoen het nie.” Elia het Elisa raakgeloop waar hy op die land besig was om te ploeg. Daar was twaalf spanne osse wat geploeg het. Elisa het saam met die twaalfde span geloop. Elia het tot by hom gestap, sy mantel om Elisa gesit en toe verder geloop. Elisa het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop. “Meneer,” het hy gesê. “Meneer, asseblief, wag net ’n rukkie. Ek wil net my pa en ma gaan groet en dan is ek nou-nou terug.” “Dit is goed so,” het Elia gesê. “Het ek enigiets aan jou gedoen?” Toe Elisa terugkom, het hy al die osse doodgemaak en ’n groot vuur gemaak. Hy het al die vleis gebraai en dit toe vir die werkers en hulle gesinne gegee. Na die groot afskeidsete is Elisa saam met Elia daar weg. So het Elisa Elia se helper geword. Ben-Hadad van Sirië het besluit om Samaria aan te val en het toe al sy troepe opgeroep. Twee en dertig ander konings het saamgegaan en al hulle perde en waens saamgebring. ’n Groot mag het na Samaria opgeruk en hulle het die stad begin beleër. Na ’n ruk het Ben-Hadad ’n boodskap na koning Agab gestuur. “Gee my al jou goud en silwer asook jou mooiste vroue en kinders,” het Ben-Hadad beveel. Agab het hom geantwoord: “Dit is reg so, Meneer. Alles wat ek het, kan u kry.” ’n Dag of wat later het Ben-Hadad weer ’n boodskap gestuur. “Ek het intussen van plan verander,” het hy vir Agab gesê. “Ek het gesê jy moet al jou goud en silwer, en al jou vroue en kinders vir my gee. Jy hoef dit nie meer te doen nie. Môreoggend hierdie tyd sal ek my mense stuur en hulle sal dit sommer self kom haal. Hulle sal jou huis, asook al die huise van jou amptenare, deursoek en alles vat wat hulle wil hê.” Agab was baie ontsteld hieroor. Hy het die land se leiers bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Ben-Hadad wil ons heeltemal vernietig. Eers het hy net die vroue en kinders sowel as die goud en silwer gevra. Ek het ingestem, maar nou het hy sy deuntjie verander. Nou wil hy alles kom vat.” “Moenie toegee nie! Moet u nie aan hom steur nie,” het die leiers en die mense gesê. Agab het toe vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir die koning ek weier. Ek sal hom alles gee wat hy vra, maar hy gaan nie alles hier kom vat nie.” Die boodskappers is toe daar weg. Ben-Hadad was kwaad en het nog ’n boodskap gestuur: “Luister hier, Agab, ek het genoeg soldate dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie. As ek hulle nie bring nie, kan die gode my maar doodmaak.” Agab het hom geantwoord: “Luister, Ben-Hadad, hier by ons is daar ’n spreekwoord wat sê dat niemand wat die wapen opneem, moet dink hy het reeds gewen nie.” Terwyl Ben-Hadad en die ander konings nog in hulle tente gelê en drink het, het hy Agab se boodskap gekry. Hy het onmiddellik sy soldate beveel om vir die aanval teen die stad gereed te maak. Intussen het ’n profeet na koning Agab toe gekom en gesê: “Meneer, die Here sê u hoef nie bang te wees vir die rumoerige skare daaronder nie. Hy sal u vandag laat wen en u sal besef dat die Here die enigste God is.” “Hoe moet die aanval verloop en wie moet die geveg begin?” het Agab gevra. “Stuur eers die jong soldate van die streekshoofde in,” het die profeet gesê. “Wie moet dan gaan?” het Agab gevra. “Dan volg u met die groot leërmag,” het die profeet gesê. Agab het toe eers die 232 jong soldate van die streekshoofde opgeroep en daarna ’n volksleër van 7 000 man saamgestel. Die aanval het teen die middag begin terwyl Ben-Hadad en sy bondgenote dronk in die tente gelê het. Eers het die jong soldate uit Samaria getrek en die voorste gevegslinie gevorm. Dit was toe dat Ben-Hadad se verkenners onraad bemerk en vir hom gaan sê: “’n Groep soldate het uit Samaria getrek en hulle is op pad na ons toe.” “Gaan vang hulle,” het Ben-Hadad dronk en deurmekaar gesê. “Of hulle nou kom om te veg of om vrede te sluit, gaan vang hulle en bring hulle lewendig hiernatoe.” Intussen het die groot volksleër ook uit die stad begin beweeg en agter die jong soldate stelling ingeneem. Toe het die geveg begin. Agab se manne het uitstekend geveg en hulle teëstanders man vir man uitgewis. Die Arameërs moes naderhand vlug. Israel het hulle agternagesit. Ben-Hadad was gelukkig om op ’n perd saam met ’n klompie ruiters weg te kom. Alles was gou verby. Toe Agab by die gevegsterrein aankom, het hy ’n groot klomp perde en waens van die vyand gevat. So het Agab op dié dag ’n oorwinning oor die Arameërs behaal. Die profeet het weer vir Agab gesê: “Vandag het dit baie goed gegaan, maar moenie te gerus wees nie. Teen volgende jaar se lente sal die Arameërs weer kom. Beplan dus baie goed en versterk u leërmag.” Koning Ben-Hadad se manne het hom ook raad gegee: “Ons moet liewer in die vlaktes veg,” het hulle gesê. “Israel het gewen omdat hulle ’n berggod aanbid. As ons op die vlaktes veg, sal dit baie beter gaan. Vervang onmiddellik die 32 konings en stel veggeneraals in hulle plek aan. Bou vir u ’n groot weermag op. Kry net soveel soldate, perde en waens as wat u in die slag teen Israel verloor het. Laat ons dan op die vlaktes gaan veg sodat ons kan wen.” Koning Ben-Hadad het na hulle geluister. Die volgende jaar het Ben-Hadad toe sy groot leërmag opgeroep om teen Israel te gaan veg. Hulle het tot by die vlaktes van Afek getrek. Die leër van Israel het bymekaargekom en hulle vir die slag voorberei. Hulle het na Afek toe getrek en daar in twee groepe verdeel. Elke groep het teenoor die Arameërs stelling ingeneem. Hulle was klein teenoor die magtige Aramese leër en het soos twee klein troppe bokke gelyk. ’n Profeet het vir Agab gaan sê: “Luister mooi wat die Here vir u sê: ‘Die Arameërs sê mos dat Ek ’n berggod is en nie ’n god wat op die vlaktes iets kan doen nie. Daarom gee ek vandag hierdie rumoerige spul Arameërs in jou hand. Jy sal vandag weer besef dat Ek werklik die Here is.’” Sewe dae lank het die twee magte net vir mekaar gelê en loer. Niks het gebeur nie, maar op die sewende dag het die groot geveg toe begin. Israel het vinnig toegeslaan en op die een dag 100 000 Aramese soldate doodgemaak. Toe die Arameërs besef hulle gaan die oorlog verloor, het hulle na Afek toe gevlug. Daar het ’n groot muur op hulle omgeval en ’n verdere 27 000 soldate gedood. Ben-Hadad was ook in Afek en het in groot angs van kamer tot kamer gevlug. Na ’n ruk het Ben-Hadad se amptenare vir hom gesê: “Meneer, so kan dit nie aanhou nie. Gee oor. Ons het gehoor die koning van Israel is ’n genadige mens. Dalk sal hy ons lewe spaar. Kom ons maak swart rousakke om ons heupe vas en draai toue om ons nek. Dan stap ons oor na die koning van Israel toe.” Hulle het toe ’n rousak om die heupe vasgemaak, toue om die nek gedraai en so is hulle na Agab toe. Hulle het vir hom gesê: “U Majesteit, u dienskneg Ben-Hadad smeek dat u sy lewe sal spaar.” “Leef hy dan nog? Hy is vir my soos ’n broer,” het Agab geantwoord. Ben-Hadad se manne het op die regte oomblik gewag en toe hulle die woordjie “broer” hoor, het hulle gesê: “Ben-Hadad is werklik u broer!” Agab het geantwoord: “Gaan haal hom.” Hulle het Ben-Hadad gaan haal en Agab het hom in sy wa laat klim. Ben-Hadad het verleë gesê: “Ek sal al die stede teruggee wat my pa van u pa, Omri, geneem het. U kan ook weer in Damaskus kom handel dryf soos wat my pa in Samaria gedoen het. As u my vrylaat, sal ek graag met u ’n ooreenkoms wil sluit voor ek vertrek.” ’n Man by een van die profeteskole het in opdrag van die Here vir een van sy vriende gesê: “Slaan my totdat die bloed loop.” Sy vriend het geweier. Daarop sê die man vir sy vriend: “Jy het nou ’n verkeerde ding gedoen. Omdat jy nie na die Here geluister het nie, sal ’n leeu jou doodbyt.” Die vriend was skaars weg toe ’n leeu hom vang en verskeur. Die man van die profeteskool het toe iemand anders gevra om hom te slaan. Dié het hom so hard geslaan dat die bloed geloop het. Die profeet het ’n groot verband om sy kop gedraai sodat niemand hom herken het nie. Toe het hy langs die pad gaan staan en vir Agab gewag om verby te kom. Toe Agab verbykom, het die profeet vir hom gesê: “U Majesteit, terwyl ek nog so teen Ben-Hadad geveg het, het een van u offisiere ’n gevangene na my toe gebring. Die offisier het gesê ek moet hom oppas en as hy sou wegkom, sal ek óf moet sterf óf ’n boete van ’n paar duisend stukke silwer moet betaal. Wel, terwyl ek besig was, het die gevangene ontsnap.” Agab het geïrriteerd geantwoord: “Jy het mos nou ’n vonnis oor jouself uitgespreek. Jy moet nou maar die gelag betaal.” Op daardie oomblik het die profeet die verband van sy kop afgeruk. Agab het gesien dat hy eintlik ’n profeet was. Die profeet het woedend vir Agab gesê: “Luister wat die Here vir jou sê: ‘Jy moes Ben-Hadad doodgemaak het. Maar toe het jy hom vandag vrygelaat. Jy was ongehoorsaam. Daarvoor sal jy met jou lewe betaal, en jou mense met hulle lewe.’” Agab is weer terug na Samaria toe, maar hy was bedruk en kwaad. Nabot het in Jisreël gewoon. Hy het ’n baie mooi wingerd gehad. Dit was langs die paleis in Jisreël. Agab het sommer baie van die wingerd gehou. Op ’n dag het Agab na Nabot toe gegaan en vir hom gesê: “Jou wingerd is mooi. Dit is ook amper teenaan my paleis. Verkoop dit asseblief aan my, want ek wil ’n groentetuin daarvan maak. Ek sal jou ’n beter wingerd gee of jou betaal. Sê net hoeveel jy wil hê.” Nabot het hom geantwoord: “Ongelukkig kan ek dit nie verkoop nie, U Majesteit. Dit is ’n stuk grond wat ek geërf het en wat al lank deel van my familie is. Dit sal teen die wil van die Here wees as ek dit verkoop.” Agab is toe terug huis toe, maar hy was baie bedruk en ongelukkig omdat Nabot nie sy wingerd wou verkoop nie. Hy het kwaad op die bed gaan lê en heeltyd na die muur lê en kyk. Hy wou ook niks eet nie. Sy vrou Isebel het hom kom vra: “Wat is fout? Hoekom eet jy nie?” “Nabot wil nie sy wingerd aan my verkoop nie,” het Agab gesê. “Ek het aangebied om hom te betaal of ’n ander wingerd vir hom te gee, maar hy wou niks weet nie.” Isebel vra Agab toe: “Wie is die koning hier? Jy of Nabot? Staan op, eet en word vrolik, want ek sal sorg dat jy Nabot se wingerd kry.” Isebel het toe ’n klomp briewe in Agab se naam geskryf en sy seël daarop afgedruk. Sy het dit na al die belangrike mense in Jisreël gestuur. In die briewe het sy gesê: “Roep ’n vasdag uit, laat al die mense bymekaarkom en laat Nabot voor by die belangrike mense sit. Kry twee booswigte wat aan weerskante van Nabot gaan sit. Laat hulle dan voor almal sê dat Nabot God en die koning gevloek het. Vat hom dan tot buite die stad en gooi hom met klippe dood.” Jisreël se leiers het gedoen wat Isebel beveel het. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en vir Nabot voor laat sit. Twee booswigte het voor almal getuig dat Nabot God en die koning gevloek het. Toe het hulle Nabot gevat en hom met klippe doodgegooi. Jisreël se leiers het Isebel toe laat weet dat haar bevele uitgevoer is en dat Nabot dood is. Toe Isebel die nuus hoor, is sy na Agab toe. “Nabot is dood,” het sy gesê. “Gaan vat sy wingerd wat hy nie aan jou wou verkoop nie, want dit is nou joune.” Agab was so bly dat hy onmiddellik na Nabot van Jisreël se wingerd gegaan het om dit op sy naam te kry.” Die Here het toe vir Elia, die profeet uit Tisbe, gesê: “Gaan na Agab toe in Samaria. Jy sal hom by Nabot se wingerd kry. Agab, die koning van Israel, het die wingerd vir hom gevat. Sê vir Agab die Here sê: ‘Jy het Nabot vermoor. Nou vat jy ook sy eiendom. Die Here sê dat die honde jou bloed nog op dieselfde plek sal oplek waar hulle Nabot se bloed opgelek het.’” Toe Agab vir Elia sien, sê hy: “Ja, my vyand, het jy my gekry?” “Ja,” het Elia geantwoord. “Jy het jou hele lewe lank net verkeerde dinge gedoen. Daarom gaan die Here groot rampe oor jou bring. Hy gaan jou geheel en al vernietig. Al die mans in jou familie, oud en jonk, sal heeltemal uitgeroei word. Die Here sal met jou maak soos Hy met Jerobeam die seun van Nebat en Baesa die seun van Agija gemaak het. Hy sal jou en jou familie van die aarde af wegvee omdat jy die Here met jou sonde verneder en Israel laat struikel het. Die honde sal jou vrou Isebel in Jisreël verskeur en opvreet. Elkeen van Agab se familie wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word. Dié wat in die veld sterf, sal deur die voëls opgevreet word.” Niemand was nog so sleg soos Agab nie. Hy het die allerverskriklikste dinge gedoen. Sy vrou het hom aangemoedig om hierdie dinge te doen. Hy het skaamteloos ander gode aanbid. Agab was net soos die Amoriete wat vroeër in die land gebly het en wat deur die Here verdryf is sodat Israel daarin kon woon. Toe Elia klaar gepraat het, het Agab sy klere geskeur, ’n roukleed van sak aangetrek en begin vas. Hy het selfs met die roukleed aan geslaap. Hy het stadig geloop. Agab was verpletter. Toe het die Here vir Elia gesê: “Het jy gesien hoe Agab hom voor My verneder het? Omdat hy berou het, sal Ek nie die rampe in sy tyd laat gebeur nie, maar eers in sy seun se tyd.” Twee jaar lank was daar vrede tussen Israel en die Arameërs. In die derde jaar het Josafat, die koning van Juda, vir Agab, die koning van Israel, gaan kuier. In dié tyd het koning Agab van Israel vir sy amptenare gesê: “Weet julle dat Ramot in Gilead eintlik aan ons behoort? Waarom het ons dit nog nie van die koning van die Arameërs teruggevat nie?” Agab het vir Josafat gevra: “Waarom gaan veg jy nie saam met ons teen Ramot nie?” Josafat het gesê: “Dit is goed so. My soldate en perde is ook joune. Voor ons gaan, moet ons egter eers die Here vra,” het Josafat gesê. Agab het toe omtrent 400 profete bymekaar laat kom en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg of moet ek nie?” Al die profete het gesê: “Trek teen Ramot op, want die Here sal u laat wen.” Josafat was onrustig en het gevra: “Is hier nie dalk nog ’n profeet wat vir die Here kan vra of ons reg optree nie?” “Ja, daar is nog een,” het Agab gesê. “Hy is Miga die seun van Jimla. Ek hou niks van die vent nie, want hy profeteer nooit iets goeds vir my nie. Hy sê altyd net slegte dinge.” “Die koning moenie so praat nie,” het Josafat gesê. “Laat ons na hom luister.” Agab het toe een van sy amptenare gestuur om Miga te gaan haal. Almal is toe na ’n dorsvloer net buite Samaria. Albei konings het op hulle troon gesit en albei het hulle koninklike klere aangehad. Al die profete was in profetiese ekstase. Een van hulle, Sedekia die seun van Kenaäna, het sulke ysterhorings gehad en hy het vir Agab gesê: “Die Here sê u sal soos hierdie ysterhorings die Arameërs verpletter.” Al die ander profete het saamgestem: “Trek maar op teen Ramot in Gilead, want u sal die oorlog wen. Die Here sal beslis die stad in u hand gee.” Die amptenaar wat Miga gaan haal het, sê toe vir hom: “Miga, al die ander profete het ’n groot oorwinning vir die koning voorspel. Jy moet tog ook dieselfde sê.” Miga het egter geantwoord: “So seker as die Here leef, ek sal net vir die koning sê wat die Here vir my gesê het.” Hulle het Miga na die koning toe gebring. Agab het vir hom gevra: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg of nie?” “Gaan maar,” het Miga gesê. “Die Here sal Ramot in u hand gee.” Agab het skerp geantwoord: “Luister hier, Miga, hoeveel keer moet ek vir jou sê om die waarheid in die Naam van die Here te praat?” “Goed dan,” het Miga gesê. “Ek sien Israel oral op die heuwels rondloop. Hulle is soos skape sonder ’n herder. Die Here sê dat hulle nie ’n koning het nie. Laat hulle maar in vrede huis toe gaan.” Agab het toe vir Josafat gesê: “Dit is net soos ek gesê het. Hierdie man voorspel nooit vir my iets goeds nie. Hy sê net altyd slegte dinge.” Miga het voortgegaan en gesê: “Hoor wat sê die Here verder: Ek het die Here in die hemel op sy troon sien sit. Rondom Hom was hemelwesens. Toe het die Here gevra: ‘Wie sal Agab gaan mislei sodat hy teen Ramot in Gilead sal optrek om daar doodgemaak te word?’ En die hemelwesens het onder mekaar gepraat. Een van hulle het toe vir die Here gesê: ‘Ek sal gaan en Agab mislei.’ ‘Hoe sal jy dit doen?’ het die Here gevra. ‘Ek sal maak dat al Agab se profete leuens vertel.’ ‘Goed dan,’ het die Here gesê. ‘Gaan mislei hom. En doen dit deeglik.’” Miga het nog ’n laaste woord vir die koning gesê: “Sien u, alles het toe so gebeur. Die Here het gemaak dat al hierdie profete vir u gelieg het. En dit terwyl die Here u ondergang beplan.” Sedekia die seun van Kenaäna het Miga op sy kakebeen geslaan en gesê: “Van wanneer af het die Here se Gees my verlaat om deur jou te praat?” “Sedekia, jy sal dit eers besef wanneer jy binnekort van kamer tot kamer gaan vlug en probeer wegkruip,” het Miga geantwoord. Daarop sê koning Agab: “Gryp vir Miga en vat hom hier weg. Vat hom na Amon, die hoof van die stad, en na prins Joas toe. Sê vir hulle om hom in die tronk te gooi. Sê ook hulle moet hom min brood en net ’n bietjie water gee. Hy moet daar bly totdat ek veilig van Ramot af teruggekom het.” Maar Miga het gesê: “U Majesteit, as u veilig van Ramot af terugkom, het die Here werklik nie deur my gepraat nie.” Miga het na die skare gekyk en gesê: “Julle moet luister na wat ek vandag vir julle sê.” Agab, die koning van Israel, en Josafat, die koning van Juda, is toe saam weg na Ramot in Gilead. Op pad het Agab vir Josafat gesê: “Jy kan maar jou koningsgewaad aanhou, maar ek gaan my vermom voor die geveg begin.” Agab het hom vermom en die geveg om Ramot het begin. Die koning van die Arameërs het 32 strydwaens gehad. Hy het elke drywer beveel om die koning van Israel te soek en uit te wis. Skielik het die drywers vir Josafat met sy koningsklere gesien en het gemeen dit is Agab. Hulle het op hom afgepyl, maar Josafat het geskree dat hy nie Agab is nie. Toe die drywers van die strydwaens sien dat hy nie Agab is nie, het hulle hom gelos. Een van die Aramese soldate het heel toevallig ’n pyl in die lug geskiet. Dit het vir Agab getref en deur ’n swak plek in sy harnas gedring. Benoud het Agab vir sy wadrywer gesê: “Ek is gewond. Draai om en kry my vinnig hier weg.” Die geveg was so hewig dat die drywer hom nie kon wegkry nie. Agab moes die hele dag in die wa bly staan en teen die Arameërs veg. Die wa was naderhand vol bloed en teen die aand is hy dood. Die son was al amper onder toe Israel se manne beveel is: “Elkeen moet na sy eie dorp en stad teruggaan. Die oorlog is verby, want die koning is dood.” Agab se liggaam is Samaria toe geneem en hy is daar begrawe. By die fontein van Samaria waar die straatvroue hulle altyd gewas het, het hulle Agab se bebloede wa afgespoel. Die honde het sy bloed daar opgelek. Dit het presies gebeur soos die Here gesê het. Alles wat Agab gedoen het, soos die huis met ivoorinlegwerk en al die stede wat hy gebou het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings beskryf. Na Agab se dood het sy seun Ahasia hom opgevolg. Josafat die seun van Asa het in die vierde jaar van Agab se koningskap die koning van Juda geword. Hy was 35 jaar toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, ’n dogter van Silgi. Josafat was ook, net soos sy pa, Asa, lief vir die Here en het die regte dinge gedoen. Hy kon egter nie die hoogtes afgeskaf kry waar die mense ander gode gedien het nie. Die volk het lustig voortgegaan om hulle offers op die hoogtes te slag en wierook daar te verbrand. Josafat het gesorg dat die verhouding met die koning van Israel goed is. Alles wat Josafat gedoen het, soos sy dapperheid en militêre oorwinnings, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings beskryf. Verder het hy ook nog al die manlike prostitute wat sedert sy pa, Asa, se tyd oorgebly het uit die land weggejaag. In Edom was daar geen koning nie. Daarom het die koning van Juda ’n goewerneur aangestel om oor Edom te regeer. Josafat het ook groot skepe gebou om goud in Ofir te gaan haal. Daar het egter niks van gekom nie, want al die skepe is in Esjon-Geber in ’n storm vernietig. Koning Ahasia van Israel het vir Josafat gesê: “My mense moet eintlik saam met jou mense op die skepe vaar.” Josafat wou egter nie. Josafat is dood en in die grafte vir die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het hom opgevolg. In die sewentiende jaar van koning Josafat van Juda se regering het Ahasia die seun van Agab koning van Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer. Ahasia het net verkeerde dinge gedoen. Hy het gemaak soos sy pa, Agab, sy ma, Isebel, en Jerobeam, wat Israel verskriklike dinge laat doen het. Hy het Baäl gedien en aanbid. Soos sy pa het hy ook die Here met sy afgode verneder. Ná koning Agab se dood het die Moabiete hulleself onafhanklik van Israel verklaar. Israel se nuwe koning, Ahasia, het op ’n dag deur die traliewerk van ’n bokamer in sy paleis in Samaria geval. Hy het baie seergekry en dadelik boodskappers na die Filistynse stad Ekron gestuur om vir die priesters van hulle god Baäl-Sebub te vra of hy gesond sal word. ’n Engel van die Here het vir Elia, wat van Tisbe af kom, gesê: “Gaan ontmoet die koning se boodskappers. Vra vir hulle: ‘Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle Ekron toe om Baäl-Sebub daar te gaan raadpleeg? Hier is ’n boodskap van die Here vir julle koning: Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’” Elia het die boodskap toe so gaan oordra. Die boodskappers het na die koning toe teruggegaan. Hy wou by hulle weet: “Hoekom is julle so gou terug?” Hulle het geantwoord: “’n Man het na ons toe gekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het. Hier is ’n boodskap vir hom van die Here af: Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle na Ekron toe om Baäl-Sebub daar te raadpleeg? Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’” Die koning vra hulle toe: “Hoe het die man gelyk wat dit alles vir julle gesê het?” Hulle het geantwoord: “Hy het harige klere aangehad wat met ’n velgordel vasgemaak is.” “Dit is Elia van Tisbe!” het die koning uitgeroep. Die koning het ’n offisier met 50 manskappe gestuur om Elia te gaan vang. Hulle het hom gekry waar hy op ’n bergtop sit. Die offisier het vir hom gesê: “Man van God, die koning sê jy moet afkom.” Elia het geantwoord: “As ek ’n man van God is, laat daar dan vuur uit die hemel afkom om jou en jou 50 manskappe te verteer.” Dit het toe presies so gebeur: vuur het uit die hemel gekom en hulle almal verteer. Daarna het die koning nóg ’n offisier met 50 manskappe gestuur. Hy het vir Elia gesê: “Man van God, die koning sê jy moet vinnig afkom!” Elia het weer geantwoord: “As ek ’n man van God is, laat daar dan vuur uit die hemel afkom om jou en jou 50 manskappe te verteer.” God het toe weer vuur uit die hemel gestuur en almal verteer. Die koning het toe ’n derde offisier met sy 50 manskappe gestuur. Toe hy Elia bereik, het hy op sy knieë by hom gepleit om sy en sy soldate se lewe te spaar: “Twee offisiere en 100 soldate het nou al doodgebrand. Ons is in u hand. Spaar ons lewe, asseblief!” Die Engel van die Here het vir Elia gesê: “Moenie bang wees nie, gaan saam met hom.” Elia het toe saam met hom na die koning toe gegaan. Hy het vir die koning gesê: “Hier is die Here se boodskap vir jou: ‘Waarom het jy boodskappers na Baäl-Sebub, die god van Ekron, gestuur om te hoor of jy gesond gaan word? Is daar dan geen God in Israel wat jy kon raadpleeg nie? Jy sal nie gesond word nie. Jy gaan beslis sterf.’” Hy hét toe gesterf, net soos die Here deur Elia voorspel het. Ahasia het nie ’n seun gehad nie. Daarom is hy deur sy broer Joram opgevolg. Dit was in die tweede regeringsjaar van Juda se koning Joram, die seun van Josafat. Die res van Ahasia se geskiedenis is opgeskryf in Die lewe en werk van al Israel se konings. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad toe dit byna tyd was dat God Elia in ’n stormwind sou wegneem hemel toe. Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my Bet-El toe.” Elisa het geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u nooit alleen laat gaan nie.” Hulle twee het toe Bet-El toe gegaan. ’n Groep profete wat in Bet-El gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” “Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy, “maar moenie daaroor praat nie!” Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my Jerigo toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe Jerigo toe gegaan. ’n Groep profete wat in Jerigo gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” Hy het toe weer geantwoord: “Natuurlik weet ek dit, maar moenie daaroor praat nie!” Elia sê toe ’n derde keer vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie!” Die twee van hulle het toe vertrek. ’n Groep van omtrent 50 profete het hulle gevolg en op ’n afstand gekyk wat hulle by die rivier doen. Elia het sy mantel opgerol en daarmee op die water geslaan. Dit het die water laat verdeel en hulle twee het droogvoets deur die rivier gestap. Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.” Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem. Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur. Elia se mantel het in die harwar van hom afgeval. Elisa het dit opgetel en na die Jordaanrivier teruggegaan. Hy het die water met die mantel geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, Elia se God?” Die water het weer verdeel en hy het deur die rivier gestap. Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig. Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.” Maar hulle het só aangehou dat hy later ingestem het. Die 50 manne het drie dae lank na Elia gesoek, maar hom nie gekry nie. Elisa was nog in Jerigo toe hulle teruggekom het. Hy vra hulle toe: “Het ek nie gesê julle kan dit maar los nie?” Die mense van Jerigo het vir Elisa gesê: “Ons het ’n probleem. Soos jy kan sien, is ons dorp mooi geleë, maar die water is sleg. Dit veroorsaak onvrugbaarheid by mens en dier.” Elisa sê toe: “Bring vir my ’n splinternuwe skottel vol sout.” Hulle het dit vir hom gaan haal. Hy stap toe na die oog van die fontein en gooi die sout daarin terwyl hy sê: “Die Here sê: ‘Ek het die water nou gesond gemaak. Dit sal nie weer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.’” En so was dit! Die water is nog altyd gesond, net soos Elisa gesê het dit sou wees. Elisa is weg uit Jerigo, na Bet-El toe. ’n Klomp seuntjies het uit die stad gekom en hom gespot. Hulle het geskree: “Gaan op, Bleskop! Gaan op, Bleskop!” Elisa het na hulle gekyk en hulle in die Here se Naam vervloek. Daar het toe twee bere uit die bos gekom en 42 van die seuntjies verskeur. Elisa is van daar af eers na die Karmelberg toe en daarna Samaria toe. Israel se nuwe koning was Joram, nog ’n seun van Agab. Hy het koning geword toe Josafat van Juda al agtien jaar lank koning was. Joram het vir twaalf jaar in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met die manier waarop hy regeer het nie, maar hy was ten minste nie so erg soos sy ouers, Agab en Isebel, nie. Hy het darem die gedenksteen wat Agab vir die afgod Baäl opgerig het, laat wegneem. Maar hy het nie alles reg gedoen nie. Hy het aangehou om die verkeerde dinge te doen waarmee koning Jerobeam begin het. Koning Mesa van Moab en sy mense was skaapboere. Hulle het jaarliks belasting van 100 000 lammers en 100 000 skape se wol aan Israel betaal. Dit was die bewys van hulle lojaliteit aan Israel. Ná Agab se dood het Mesa teen Israel gerebelleer. Joram het dadelik saam met sy soldate van Samaria af vertrek om teen die Moabiete te gaan veg. Hy het ook vir Josafat, koning van Juda, ’n boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my in opstand gekom. Sal jy saam met my teen die Moabiete gaan veg?” Josafat het geantwoord: “Natuurlik gaan ek saam. Ons is bondgenote. Jy kan my soldate en perde by joune tel.” Joram vra toe: “Watter roete moet ons neem?” Josafat het laat weet: “Die pad deur die Edomwoestyn is die beste.” Die konings van Israel en Juda het met hulle leërs vertrek. Die koning van Edom het ook met sy leër kom help. Na ’n week se opmars deur die woestyn was hulle egter diep in die moeilikheid. Daar was nie meer water vir mens of dier nie. Koning Joram was ontsteld. Hy het gesê: “Ons moes die veldtog nooit onderneem het nie! Die Here het ons net hier bymekaargebring om ons drie konings in die Moabiete se mag oor te gee.” Josafat het egter gevra: “Is hier niemand onder die soldate wat ’n boodskapper van die Here is nie? As daar so iemand is, kan ons deur hom laat vra wat die Here se plan met ons is.” Een van die Israelitiese offisiere het gesê: “Elisa, Safat se seun, is hier. Hy het vroeër ten nouste saam met Elia gewerk.” “Kom ons gaan na hom toe,” het Josafat gesê, “die Here sal deur hom met ons praat.” Die drie konings het toe na Elisa toe gegaan. Elisa het egter vir Joram gesê: “Ek wil niks met jou te doen hê nie. Gaan na jou pa en ma se profete toe. Hulle het mos ander gode gedien.” Joram het geantwoord: “Dit sal nie help nie. Dit was juis die Here wat ons drie hierheen laat kom het sodat die Moabiete ons kan oorwin!” Elisa het toe geantwoord: “Ek praat in die Naam van die Here, die Groot Bevelvoerder. Ek sal die Here net raadpleeg omdat ek sulke hoë agting vir Josafat het. As dit net jy was, sou ek nie eens na jou geluister het nie. Bring nou iemand om musiek te maak sodat ek die Here kan raadpleeg.” Terwyl die musiek gespeel het, het die Here se krag Elisa gevul. Hy het gesê: “Die Here sê: Maak gate hier in die droë vallei. Dit sal binnekort vol water staan. Sonder dat julle die wind hoor waai of reën sien val, sal hier genoeg water vir julle en al die diere wees. Maar dit is net ’n kleinigheid vir die Here. Hy sal julle ook die Moabiete laat oorwin. Julle sal al hulle mooi en versterkte stede inneem. Julle sal al die goeie bome afkap, al die putte opvul en al die bruikbare landerye met klippe bederf.” Die volgende oggend was dit toe ook so: teen die tyd van die oggendoffer het daar soveel water van Edom se kant af gekom dat die hele gebied onder water was. Die Moabiete het intussen gehoor dat die konings van Israel, Juda en Edom op pad was om teen hulle te veg. Hulle het elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle na die front toe gestuur. Toe hulle daardie oggend opstaan, het die son oor die water geskyn; dit het soos bloed gelyk. Die Moabiete het vir mekaar gesê: “Dit is bloed daardie! Die drie leërs het seker onder mekaar begin veg en mekaar uitgewis. Kom ons gaan maak die buit bymekaar!” Toe hulle egter by die Israeliete se kamp kom, het die Israeliete hulle aangeval. Die Moabiete het omgespring en probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agtervolg en oorwin. Hulle het die stede vernietig, die landerye vol klippe gegooi, al die putte toegestop en al die goeie bome afgekap. Later het net Kir-Geres, met ’n klipmuur rondom, oorgebly. Dit was egter reeds omsingel en is met klippe bestook. Toe die koning van Moab sien hoe benard hulle situasie was, het hy 700 soldate gevat en probeer deurbreek waar die Edomiete gestaan het. Hulle kon egter nie daarin slaag om uit te kom nie. Toe vat hy sy oudste seun, wat hom as koning sou opvolg, en verbrand hom as offer op die stad se muur. Die woede wat hierdie offer veroorsaak het, het die Israeliete laat onttrek en hulle na hulle land laat teruggekeer. Die weduwee van een van Elisa se medeprofete het baie mooi vir Elisa gevra om haar te help. Sy het gesê: “My man, wat vir u gewerk het, is dood. U weet self dat hy die Here getrou gedien het. Maar nou was die skuldeiser by my. Hy dreig om my twee seuns vir hom as slawe te neem.” “Wat kan ek vir jou doen?” het Elisa gevra. “Vertel my wat jy in die huis het.” Sy het geantwoord: “Ek het net mooi niks oor nie. Net ’n flessie olyfolie.” Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie. Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie. Sit die volles eenkant neer.” Sy het presies gedoen wat Elisa gesê het. Die seuns het die kanne aangegee en sy het dit volgemaak. Toe al die kanne vol was, het sy gesê: “Gee nog een aan,” maar haar seun het geantwoord: “Daar is nie meer nie!” Net toe het die olie opgehou vloei. Die weduwee het vir Elisa gaan vertel wat gebeur het. Hy sê toe vir haar: “Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om jou en jou seuns te onderhou.” Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.” Toe Elisa weer ’n keer in Sunem was, het hy opgegaan kamer toe om te gaan rus. Hy het vir sy assistent, Gehasi, gesê: “Gaan sê vir die vrou ek wil met haar praat.” Toe sy daar bo kom, het hy vir Gehasi gesê: “Sê vir haar: Ons waardeer die baie moeite wat jy vir ons gedoen het. Is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen? Kan ek vir jou ’n goeie woord by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?” “Nee, dankie,” het sy geantwoord, “ek woon doodgelukkig hier tussen my mense.” Later het Elisa vir Gehasi gevra: “Wat kan ons tog vir die vrou doen?” “Daar is tog iets,” het Gehasi gesê, “sy het nie ’n seun nie en haar man is al ’n ou man.” Elisa sê toe: “Roep haar gou weer hier na my toe!” Toe sy daar bo kom, het sy in die deur van sy kamer bly staan. Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.” Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!” Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het. Op ’n dag het die seuntjie, wat toe al ’n bietjie groter was, na sy pa op die lande gegaan. Hulle was besig om te oes. Skielik het die kind uitgeroep: “Pa, my kop is seer! My kop!” Sy pa het dadelik ’n werker gestuur en gesê: “Vat hom gou na sy ma toe.” Toe hy met die kind by die huis kom, het sy ma hom op haar skoot vasgehou, maar hy is teen die middag dood. Sy het die liggaampie opgedra na Elisa se kamer toe en hom op die bed neergelê. Daarna het sy uitgegaan en die deur gesluit. Sy het toe vir haar man laat weet: “Stuur vir my een van die werkers en ’n donkie. Ek wil gou die man van God gaan besoek. Ek sal binnekort terug wees.” “Waarom vandag?” het haar man gevra. “Dit is tog nie vandag nuwemaan of sabbat nie.” “Toemaar, wees gerus,” het sy geantwoord en onmiddellik die donkie opgesaal. Sy het vir die werker gesê: “Jaag die donkie aan en moet nie stadiger ry nie, behalwe as ek so sê.” Sy het na Elisa toe gery waar hy op die Karmelberg gebly het. Elisa het haar gesien toe sy nog ’n ent weg was en vir Gehasi gesê: “Kyk daar. Dit is die vrou van Sunem. Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.” Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,” maar verbygejaag na Elisa toe op die berg. Toe sy by hom kom, het sy voor hom op die grond geval en sy voete vasgegryp. Gehasi wou haar wegstoot van Elisa af, maar hy het gesê: “Los haar. Sy is baie ontsteld. Hier is groot fout, maar die Here het niks daarvan vir my gesê nie.” “Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.” Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.” Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.” Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê. Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid. Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword. Elisa het opgestaan en ’n keer in die kamer op en af geloop en toe weer op die kind gaan lê. Toe het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak! Elisa het dadelik vir Gehasi geroep en gesê: “Gaan haal gou die kind se ma!” Toe sy inkom, het hy vir haar gesê: “Hier is jou kind!” Sy het dankbaar voor hom neergesak, die kind opgetel en hom ondertoe gedra. Elisa is toe terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd ’n hongersnood in daardie omgewing. Die dorp se profetegroep het by Elisa vergader. Hy het vir Gehasi gesê: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir ons om te eet.” Een van die manne het uitgegaan veld toe om te help kruie pluk vir die bredie. Hy het op ’n wilde rankplant met vrugte afgekom en ’n klomp daarvan gepluk. Hy het die vrugte in die bredie ingesny sonder dat hy geweet het wat dit was. Toe die bredie gaar was, het hulle begin inskep. Maar toe hulle dit proe, het hulle uitgeroep: “Man van God! Dié kos is giftig!” en geweier om verder te eet. Elisa het gesê: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Nou is dit reg. Julle kan maar inskep,” en niemand het iets daarvan oorgekom nie. ’n Man uit Baäl-Salisa het by Elisa aangekom met twintig garsbrode en ’n sak graan. Dit het uit die eerste deel van sy oes gekom. Elisa het gesê: “Deel dit aan ons mense uit, dat hulle kan eet.” Sy assistent kon dit nie glo nie. “Hoe moet ek hiermee vir 100 mense kos gee? Dis heeltemal te min!” het hy gevra. Elisa het geantwoord: “Deel jy dit maar net uit. Die Here het gesê hulle sal genoeg hê om te eet en daar sal nog oorbly ook.” Dit is presies wat toe gebeur het. Almal het geëet en daar het nog kos oorgebly, net soos die Here gesê het. Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad. Aramese bendes het in dié tyd strooptogte in dele van Israel uitgevoer. Een van hulle gevangenes was ’n jongmeisie. Sy het in Naäman se huis beland as bediende vir sy vrou. Op ’n dag sê die meisie vir Naäman se vrou: “Ek wens Meneer kon by die profeet in Samaria uitkom. Hy sou hom maklik gesond kon maak.” Naäman het daarvan gehoor en vir die koning gaan vertel wat die Israelitiese meisie gesê het. Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?” Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra. Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!” Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery. Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.” Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word. Is die Abanarivier en die Parparrivier van Damaskus nie in elk geval beter as al Israel se riviere saam nie? Waarom kan ek my nie dáár gaan was om gesond te word nie?” Hy is toe woedend daar weg. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.” Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier. Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer. Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!” Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!” Gehasi is toe haastig agter Naäman aan. Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?” “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?” Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie! Omdat jy dit gedoen het, gaan jy en jou nageslag altyd aan die velsiekte ly waarvan Naäman so pas gesond geword het.” Toe Gehasi van Elisa af weggaan, was sy vel reeds spierwit uitgeslaan van die siekte. Die profete het eendag vir Elisa gesê: “Die bymekaarkomplek waar ons u ontmoet, is nou te klein. Kan ons langs die Jordaanrivier gaan hout kap? As elkeen ’n paar balke bring, kan ons ’n nuwe plek bou waar ons bymekaar kan kom.” Elisa het vir hulle gesê: “Gaan gerus!” Een van hulle het egter gesê: “Maar u moet saam met ons kom!” “Nou goed,” het hy geantwoord, “ek kom saam.” Hy is toe saam met hulle rivier toe en hulle het die bome begin afkap. Terwyl hulle werk, het een se byl van die steel losgeraak en in die water geval. “Ag, Meneer,” het hy gekerm, “dit was ’n geleende byl!” Elisa het gevra: “Waar het die byl in die water geval?” Toe hy vir Elisa die plek wys, het Elisa ’n stok afgesny en dit daar in die water gegooi. Die byl het op die water begin dryf en Elisa het vir die man gesê: “Haal dit nou maar uit.” Die man het sy hand uitgesteek en die byl uit die water gehaal. Die Arameërs was in ’n oorlog met Israel gewikkel. Dit het telkens gebeur dat die Aramese koning met sy bevelvoerders vergader het en dat hulle besluit het om op ’n sekere plek aan te val. Dan het Elisa dadelik ’n boodskap na Israel se koning gestuur om hom te waarsku oor die betrokke plek. Hy sou vir hom laat weet: “Vermy hierdie plek, want dit is waar die Arameërs julle gaan aanval.” Die koning sou dan dadelik ’n boodskap na die betrokke plek toe stuur om die mense daar te waarsku om versigtig te wees. Dit het ’n hele paar keer gebeur. Die Aramese koning het al hoe onrustiger geraak omdat hulle geheime so uitgelek het. Hy het die leiersgroep byeengeroep en gesê: “Dis duidelik dat iemand uit die binnekring ons geheime aan die Israeliete verklap. Ek eis om te weet wie dit is!” “Dis nie een van ons nie, o koning,” het een van die offisiere geantwoord. “Dis Elisa, die profeet van Israel, wat alles weet. Hy kan selfs vir sy koning vertel wat u in u slaapkamer sê!” “Nou gaan kyk waar hy is,” het die koning gesê, “sodat ons hom kan vang.” Hulle het vir die koning laat weet dat Elisa in die dorp Dotan is. Toe het die Aramese koning op ’n dag ’n klomp soldate met perde en strydwaens na Dotan toe gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die dorp omsingel. Die volgende oggend vroeg is Elisa se assistent uit buitentoe. Hy kon sy oë nie glo nie! Reg rondom die stad het daar Aramese soldate, strydwaens en perde reggestaan om te veg. Hy het ingestorm en bang uitgeroep: “Ag tog, Meneer! Wat gaan ons nou doen?” Elisa het geantwoord: “Moenie bekommerd wees omdat hulle so baie is nie. Dié aan ons kant is baie meer as hulle soldate!” Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was. Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen. Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei. Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria! Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?” “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.” Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer. ’n Ruk later het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër opgeroep. Hulle het na Samaria toe opgetrek en die hele stad lamgelê. ’n Verskriklike hongersnood het geleidelik as gevolg van die beleg ontstaan. Dit was só erg dat ’n donkiekop later byna ’n kilogram silwer en ’n skeppie duiwemis meer as 50 gram silwer gekos het. Eendag het die koning van Israel op die stadsmuur gaan stap om te sien wat in die stad aangaan. ’n Vrou het hom gesien en uitgeroep: “U Majesteit, help my, asseblief!” “As die Here jou nie help nie, hoe kan ek help? Ek het nie meel of wyn nie, daar is niks nie!” het hy geantwoord. Maar toe vra hy haar: “Waarmee kan ek help?” “In my saak teen dié vrou, o koning,” het sy geantwoord. “Sy het gesê: ‘Kom ons eet jou seun vandag, dan kan ons môre myne gaarmaak.’ Ons het my seun toe eerste geëet, maar toe ek die volgende dag vir haar sê: ‘Maak nou jou seun dood, dat ons kan eet,’ het sy haar kind weggesteek.” Die koning was verskriklik ontsteld toe hy haar storie hoor. Hy het sy klere stukkend geskeur as teken van sy ontsteltenis. Toe hy verder loop, kon die stad se mense sien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aangehad het. “God kan my maar doodmaak as ek nie vandag nog vir Elisa doodmaak nie,” het hy ontsteld verklaar. Elisa het op daardie tydstip saam met ’n groep leiers in sy huis gesit. Die koning het ’n boodskapper na hom gestuur om hom te laat roep. Nog voordat die boodskapper egter by die huis aangekom het, het Elisa vir die mense by hom gesê: “Pas op! Ons koning, die seun van ’n moordenaar, het iemand gestuur om my dood te maak. Sorg dat die deur toe is as hy hier kom sodat hy nie kan inkom nie. Die koning is self te voet hierheen op pad. Ek sal met hom praat.” Hy was nog besig om te praat toe dit gebeur. Die koning het Elisa toegesnou: “Dit is die Here self wat hierdie ellende oor ons laat kom het! Hoe kan ek nog langer hoop dat Hy ons moet red?” Elisa het hom geantwoord: “Luister ’n bietjie wat sê die Here: ‘Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.’” “Jy is verspot, man!” het die offisier wat saam met die koning was, vir Elisa gesê. “Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Vier melaatse mans, mense met ’n ernstige velsiekte, het buite die poort van Samaria gebly. Hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons nou hier bly sit om dood te gaan? In die stad is daar nie redding nie, die hongersnood is te erg en ons sal daar doodgaan. As ons net hier bly, sal ons ook sterf! Dus, kom ons loop oor na die Arameërs toe. As hulle ons lewe spaar, dan leef ons ten minste. As hulle ons doodmaak, is dit tog maar net wat hier ook met ons sou gebeur het.” Hulle het toe teen die aand oorgeloop na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle daar aankom, was daar nie ’n mens nie. Dit is wat gebeur het: Die Here het die Aramese soldate ’n geluid laat hoor wat geklink het soos ’n groot leërmag wat hulle aanval. Dit het geklink soos ’n geweldige klomp strydwaens en perde. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Israel se koning het die Hetiete en die Egiptiese leërs gehuur om teen ons te kom veg.” Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan. Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen. Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.” Hulle is toe terug stad toe. Hulle het die stad se poortwagters geroep en vertel wat in die vyand se kamp gebeur het. Hulle het gesê: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, was daar geen mens in sig nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente wat daar staan.” Die poortwagters het die boodskap oorgedra tot by die koning in sy paleis. Toe die koning die nuus kry, het hy in die middel van die nag opgestaan. Hy het vir sy offisiere gesê: “Laat ek julle vertel wat die Arameërs se plan is. Hulle weet tog dat ons hier in die stad van die honger vergaan. Nou het hulle hulle kamp ontruim en in die veld gaan wegkruip. Hulle probeer ons uit die stad uitlok om ons gevange te neem en die stad dan in te neem.” Een van die offisiere het gevra: “Moet ons nie tog maar verkenners uitstuur om te gaan kyk wat gebeur het nie? Laat hulle vyf van die perde wat oor is, vat en gaan kyk. As hulle iets oorkom, is dit nie veel erger as wanneer hulle hier bly en saam met ons doodgaan nie.” Die koning het toe twee strydwaens laat inspan. Hy het ’n paar verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk wat aangaan.” Hulle is toe daar weg en het die spoor van die Aramese leër gevolg tot by die Jordaanrivier. Die pad waarlangs hulle gevlug het, was besaai met klere en goed wat die Aramese soldate neergegooi het om vinniger te kan vlug. Die verkenners het teruggekom en vir die koning vertel wat hulle gesien het. Die mense van Samaria het uit die stad uitgestorm om die Aramese kamp te gaan plunder. Só het dit waar geword dat ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel net ’n paar gram silwer gekos het. In die chaos het die koning die offisier wat saam met hom was, aangestel om orde in die poortgebied van die stad te handhaaf. Die skare het hom egter daar op die plein by die poort doodgetrap. So het alles gebeur soos Elisa voorspel het toe die koning die vorige dag na sy huis toe gekom het. Die man van God het toe vir die koning gesê: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.” Die offisier wat saam met die koning was, het toe vir Elisa gesê: “Jy is verspot, man! Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom toe geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Dit het net so gebeur. Die mense het hom op die plein by die poort doodgetrap. Elisa het vir die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, gesê: “Vat jou familie en gaan bly op ’n plek in die buiteland. Die Here het bepaal dat daar in ons land ’n hongersnood gaan wees wat sewe jaar lank gaan aanhou.” Die vrou het dit gedoen en vir sewe jaar in die land van die Filistyne gaan woon. Na die hongersnood het sy na Israel toe teruggekom. Sy het toe met die koning gaan praat om haar huis en haar grond te probeer terugkry. Die koning was net toe besig om met Gehasi, Elisa se assistent, te gesels. Hy het vir Gehasi gevra: “Vertel my ’n bietjie van die groot dinge wat Elisa gedoen het.” Terwyl Gehasi besig was om te vertel van die keer toe Elisa die seun lewendig gemaak het, kom die vrou net daar aan om met die koning te praat oor haar huis en haar grond. “Kyk, U Majesteit!” het Gehasi uitgeroep. “Dít is die vrou en haar seun wat deur Elisa lewendig gemaak is!” “Is dit waar?” het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig. Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: “Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort. Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is van die tyd wat sy weg was.” Elisa het Damaskus, die hoofstad van Aram, besoek terwyl die koning, Ben-Hadad, siek in die bed was. Iemand het vir Ben-Hadad vertel dat Elisa in die stad was. Toe hy dit hoor, het Ben-Hadad vir Gasael na Elisa toe gestuur. “Neem geskenke saam en gaan vra vir die man van God Hy moet die Here vra of ek weer gesond gaan word,” het hy beveel. Gasael het 40 kamele gelaai met die beste produkte uit Damaskus as ’n geskenk vir Elisa. Toe hy by hom aankom, het hy gesê: “U kneg, Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy weer gesond sal word.” Elisa het geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal gesond word,’ maar die Here het my laat weet dat hy eintlik gaan sterf.” Elisa het stip na Gasael gekyk, totdat Gasael ongemaklik begin raak het. Toe het Elisa begin huil. Gasael het gevra: “Waarom huil u, Meneer?” “Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy met die Israeliete gaan doen,” het hy geantwoord. “Ek weet jy gaan hulle vestingstede aan die brand steek, hulle jongmans doodmaak, hulle kinders teen die grond doodslaan en dat jy hulle swanger vroue gaan oopsny.” “Maar, Meneer, hoe kan ek wat eintlik niemand is nie, iets so verskrikliks doen?” het hy gevra. Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my bekend gemaak dat jy die koning van Aram gaan word.” Gasael is toe terug na Ben-Hadad toe. Ben-Hadad het gevra: “Wat sê Elisa?” “Hy sê u gaan beslis gesond word,” het Gasael geantwoord. Maar die volgende dag het hy ’n laken gevat en dit natgemaak. Hy het toe die nat doek oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk en hom versmoor. Daarna het Gasael in Ben-Hadad se plek koning van Aram geword. Joram, die seun van koning Josafat, het die koning van Juda geword in die vyfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het. Hy was 32 toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer. Hy was getroud met ’n dogter van Agab en het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg. Hy het dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie. Ter wille van Dawid, wat ’n besondere verhouding met die Here gehad het, wou die Here Juda nie vernietig nie. Trouens, Hy het vir Dawid belowe dat daar altyd ’n koning uit sy nageslag in Juda sou regeer. Tydens Joram se bewind het die Edomiete teen Juda gerebelleer en hulle eie koning gekroon. Joram wou die orde herstel en het die Edomiete met al sy strydwaens gaan aanval. By die dorp Saïr het die Edomiete hulle omsingel. Hy en die strydwaens kon egter in die nag uitbreek en wegkom, maar sy voetsoldate het gevlug en huis toe gegaan. Edom is tot vandag toe onafhanklik van Juda. Dit was ook in dié tyd dat die dorp Libna teen Juda in opstand gekom het. Die res van Joram se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Na sy dood is Joram by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Ahasia opgevolg. Ahasia, die seun van koning Joram van Juda, het koning van Juda geword in die twaalfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het. Hy was 22 toe hy koning geword het en hy het ’n jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n vrou uit die nageslag van koning Omri van Israel. Hy het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg en dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie. Die rede hiervoor was dat hy in die familie van Agab ingetrou het. Ahasia het koning Joram van Israel gaan help in sy oorlog teen koning Gasael van Aram. Die geveg het naby die dorp Ramot in Gilead plaasgevind, waar Joram gewond is. Hy het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel. Terwyl hy in Jisreël aangesterk het, het Ahasia van Juda hom kom besoek. Intussen het die profeet Elisa iemand uit die profetegroep geroep en vir hom gesê: “Vat hierdie flessie olie en gaan na die dorp Ramot in Gilead toe. Gaan soek daar vir Jehu, die seun van Josafat en kleinseun van Nimsi. Roep hom weg van die ander offisiere af na ’n ander vertrek toe. Wanneer julle alleen is, moet jy die olie op sy kop uitgooi. Sê dan vir hom: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’ Daarna moet jy die deur oopmaak en maak dat jy so vinnig moontlik wegkom!” Die jong profeet het dit gedoen en na Ramot in Gilead toe gegaan. Die bevelvoerders van die leër was juis bymekaar toe hy daar aankom. Hy het gesê: “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal.” Jehu het gevra: “Vir wie van ons is die boodskap?” “Dit is vir ú, Generaal,” het die jongman geantwoord. Jehu het toe opgestaan en saam met hom die huis ingegaan. Die jongman het die olie op sy kop uitgegooi en gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou om koning te wees oor my volk, Israel. Jy moet die familie van Agab, vir wie jy gewerk het, uitwis. Dan wreek Ek My so op Isebel vir die moord op my profete en die ander mense wat vir die Here gewerk het. Agab se familie moet almal doodgemaak word. Elke enkele manlike bloedverwant van Agab moet sterf! Ek sal Agab se familie uitwis soos Ek Jerobeam, die seun van Nebat, en Baesa, die seun van Agija, se families uitgewis het. Die honde sal Isebel se lyk op die plein in Jisreël vreet en niemand sal haar begrawe nie.’” Nadat hy alles gesê het, het die jongman die deur oopgemaak en gevlug. Jehu het teruggegaan na die ander offisiere toe. Iemand het vir hom gevra: “Wat gaan aan? Wat wou hierdie kranksinnige kêrel by jou hê?” Jehu het geantwoord: “Julle weet tog almal hoe hierdie mense kan onsin praat!” “Nee, jy lieg! Vertel vir ons wat hy gesê het,” het hulle aangedring. Jehu het toe vir hulle gesê: “Hy het vir my gesê: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’” Hulle het dadelik hulle klere as ’n eerbewys op die trappe voor hom neergesit. Toe laat hulle iemand op die ramshoring blaas en almal het geskree: “Jehu is koning!” Jehu het toe planne begin beraam om Joram se bewind omver te werp. Joram se magte was by Ramot in Gilead saamgetrek om die stad teen ’n aanval van die Arameërs te beskerm. Koning Joram self is egter in die gevegte gewond en moes na Jisreël teruggaan om te herstel. Jehu het gesê: “As julle my steun, sorg dan dat niemand hier uit Ramot vlug om die nuus van wat ons doen in Jisreël te gaan vertel nie.” Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gejaag. Joram was nog in die bed waar Ahasia hom besoek het. ’n Wag op een van die torings het die klomp mense sien aankom en laat weet: “Hier kom ’n klomp mense aan.” Joram het beveel: “Stuur iemand te perd om te gaan vra of hulle in vrede kom.” Toe die perderuiter by Jehu-hulle kom, sê hy: “Die koning vra of julle in vrede kom.” Jehu het geantwoord: “Wat praat jy van vrede? Val agter my in!” Die wag het vir Joram laat weet: “Die ruiter het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie!” Joram het toe nog ’n boodskapper gestuur, maar presies dieselfde het weer gebeur. Die wag het vir Joram gesê: “Die tweede boodskapper kom ook nie terug nie. En ek dink dit moet Jehu, die seun van Nimsi, wees wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens!” Die koning het toe beveel: “Kry vir my ’n strydwa gereed!” Koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda het toe op hulle strydwaens vir Jehu tegemoet gery. Hulle het mekaar op die stuk veld ontmoet wat vroeër aan Nabot behoort het. Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?” “Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?” Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!” Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak. Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry: ‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.” Toe Ahasia sien wat gebeur, het hy weggejaag in die rigting van Bet-Gan. Jehu het agter hom aangejaag en vir sy mense geskree: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur, naby Jiblaim, is hy gewond. Hy kon nog tot by Megiddo wegjaag, waar hy dood is. Sy amptenare het sy lyk op sy strydwa Jerusalem toe geneem en hom daar, in die Stad van Dawid, by sy voorouers begrawe. Ahasia het in Joram se elfde jaar as koning van Israel in Juda begin regeer. Toe Isebel hoor dat Jehu na Jisreël toe op pad was, het sy haar gegrimeer en haar hare versorg. Sy het by die venster gaan staan en buitentoe gekyk. Toe Jehu by die stadspoort inkom, het sy vir hom gevra: “Kom jy in vrede, moordenaar? Jy is net soos Simri wat sy heer vermoor het.” Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant?” Twee of drie van die paleiswerkers het vir hom gekyk. Toe skree hy vir hulle: “Gooi haar daar af!” Hulle het haar toe by die venster uitgegooi. Daar het van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat en Jehu het haar nog verder onder die perdehoewe vertrap. Jehu het toe in die paleis gaan eet en drink. Toe hy versadig was, het hy gesê: “Iemand moet die vervloekte vrou gaan begrawe, want sy was darem ’n koning se dogter.” Toe hulle buite kom, was daar byna niks van haar oor nie. Hulle kon net haar kopbeen, haar voete en haar hande vind. Hulle het vir Jehu gaan vertel wat hulle gekry het. Hy sê toe: “Dit is nou presies wat die Here gesê het met Isebel sou gebeur. Elia, die profeet, het gesê: ‘Honde sal op die oop stuk grond in Jisreël Isebel se vleis eet.’ Haar oorblyfsels sal soos mis op die velde lê en niemand sal weet dit is Isebel se oorblyfsels nie.” Daar het 70 prinse uit Agab se familie in Samaria gewoon. Jehu het vir die leiers in Samaria en vir die mense wat die prinse grootgemaak en geleer het ’n brief geskryf. Hy het geskryf: “Die koning se seuns is almal by julle en julle het strydwaens, perde, wapens en ’n versterkte stad tot julle beskikking. Kies nou die beste kandidaat uit die seuns as sy pa se opvolger. Maak dan reg om Agab se koningshuis te verdedig.” Die leiers was baie bang vir Jehu en het vir mekaar gesê: “Hy het nou al klaar twee konings doodgemaak. Hoe sal ons ooit teen hom kan wen?” Hulle het eenparig vir Jehu laat weet: “U kan maar sê wat ons moet doen en ons sal dit doen. Ons wil nie een van die seuns koning maak nie. U is nou ons leier en ons wag op u bevele.” Jehu skryf toe ’n tweede brief en sê vir die leiers: “As julle regtig aan my kant is, maak dan al die prinse dood en kom môre na my toe. Maar bring die koppe saam, dat ek kan sien dat hulle regtig dood is. Die seuns was tuis by leiers wat hulle moes opvoed.” Toe die leiers die brief kry, het hulle gedoen wat Jehu geëis het. Hulle het al 70 die prinse doodgemaak, elkeen se kop afgekap en in mandjies gesit en na Jehu in Jisreël toe gestuur. Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.” Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak? Julle moet net weet dat alles waar sal word wat die Here oor Agab en sy familie gesê het. Wat julle hier sien, is die manier waarop die Here dit wat Elia aangekondig het, laat gebeur het.” Daarna het Jehu al Agab se familielede in Jisreël doodgemaak. Ná hulle het hy Agab se hoë amptenare, asook sy vriende, vertrouelinge en priesters laat doodmaak. Daar het niemand uit Agab se familie oorgebly nie. Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.” “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak. Op pad daarvandaan het Jehu vir Jonadab, die seun van Rekab, raakgeloop wat na hom toe gekom het. Nadat hulle mekaar gegroet het, het Jehu vir Jonadab gevra: “Is jy so lojaal aan my soos ek aan jou?” “Ja, ek is,” het Jonadab geantwoord. “Nou gee my dan jou hand!” het Jehu gesê en sy hand uitgesteek en vir Jonadab op sy strydwa gehelp. Jehu sê toe vir hom: “Kom nou saam met my. Kom kyk hoe ywerig kan ek vir die Here werk!” Jonadab het saam met Jehu Samaria toe gery. In Samaria het Jehu almal doodgemaak wat nog van Agab se familie oor was. Dit was soos wat die Here deur Elia gesê het dit sou gebeur. Jehu het ’n baie groot vergadering belê en vir die mense gesê: “As julle dink dat Agab baie lief was vir Baäl, moet julle sien wat ék alles gaan doen om Baäl te vereer! Roep al die profete van Baäl bymekaar, ook al die mense wat lief is vir hom en die priesters wat in sy tempel werk. Almal moet daar wees, want ek wil ’n baie groot fees ter ere van Baäl hou. Wie nie kom nie, sal ek laat doodmaak.” Jehu se plan was egter om al die Baälaanbidders dood te maak. Jehu het beveel: “Roep ’n feesdag vir Baäl uit!” Hulle het dit gedoen en Jehu het boodskappers reg deur die land gestuur om almal bymekaar te maak. Baäl se mense het in groot getalle opgedaag en die Baältempel van hoek tot kant volgemaak. Jehu het vir die toesighouer oor die klerekamer gesê: “Jy moet sorg dat elke feesganger feesklere dra.” Die klere is toe aan hulle uitgedeel. Jehu en Jonadab het saam met die Baälvereerders in die tempel ingegaan en vir hulle gesê: “Maak seker dat hier nie mense onder ons is wat eintlik die Here dien nie. Hulle is glad nie deel van hierdie fees nie.” Almal was in die tempel saam om vir Baäl diere te slag en hom met offers te vereer. Jehu het egter gereël dat daar buite die tempel 80 soldate gereed staan. Hy het hulle met hulle lewe gedreig en gesê: “Die een van julle wat ’n enkele een van hierdie feesgangers lewendig laat wegkom, sal met sy lewe boet!” Toe Jehu klaar was met die offer, het hy vir die wagte en offisiere gesê: “Gaan in en maak almal dood. Niemand mag oorbly nie!” Die soldate is toe die tempel in en het die mense met swaarde doodgesteek en die lyke uitgegooi. Hulle het tot in die binneste heiligdom van die tempel ingegaan en het die pilaar wat daar binne was, uitgebring en in die vuur gegooi. Daarna het hulle die gedenksteen ter ere van Baäl stukkend gebreek en die hele gebou afgebreek. Hulle het openbare toilette daarvan gemaak, en dit is waarvoor die plek nog steeds gebruik word. So het Jehu alle tekens van Baälverering in Israel uitgeroei. Jehu het egter nie opgehou om die verkeerde dinge te doen wat die Israeliete sedert die tyd van Jerobeam, die seun van Nebat, gedoen het nie. Hy het niks aan die goue bulbeelde gedoen wat in Bet-El en Dan gestaan het nie. Ten spyte daarvan het die Here vir hom gesê: “Jy het goed gedoen om die familie van Agab heeltemal uit te roei. Dit is wat Ek wou gehad het moes gebeur. Daarom het Ek besluit dat jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders vier geslagte lank in Israel sal regeer.” Maar Jehu was nie heeltemal getrou aan die Here, die God van Israel, se wette nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam in Israel ingebring het nie. Dit was juis in die tyd van Jehu dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner word. Koning Hasael van Aram het dele van die land oos van die Jordaanrivier beset. Hy het Gilead beset, en dit het die stamgronde van Gad, Ruben en Manasse ingesluit, van Aroër aan die Arnonrivier af, tot by die Basanplato. Die res van Jehu se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is Jehu in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom opgevolg, nadat Jehu 28 jaar oor Israel regeer het. Toe Ahasia se ma, Atalia, gehoor het dat hy dood is, het sy die hele koningsfamilie begin uitwis. Ahasia se suster, Jehoseba, het besef wat Atalia se plan was. Sy het stilletjies een van Ahasia se seuntjies, Joas, tussen die kinders wat doodgemaak sou word, gaan uithaal en weggesteek. Jehoseba het toe vir Joas en die vrou wat hom versorg het in ’n slaapkamer gaan wegsteek en daarom is hy nie doodgemaak nie. Joas is ses jaar lank in die tempel van die Here weggesteek. Dit is hoe lank Atalia oor Juda regeer het. Gedurende Atalia se sewende jaar op die troon het die priester Jojada die offisiere van die koninklike wag en die tempelwagte na hom in die tempel toe ontbied. Nadat hy hulle daar in die tempel ’n eed laat sweer het dat hulle nie sal praat nie, het hy ’n ooreenkoms met hulle gesluit. Daarna het hy vir hulle die koning se seun gewys. Hy gee toe vir hulle die volgende bevele: “Luister nou mooi na my reëlings: ’n derde van die soldate wat op die sabbatdag aan diens is, moet by die paleis gaan wagstaan. Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort waghou en die orige derde moet agter die paleiswagte gaan waghou. Almal saam is verantwoordelik vir die paleis. Die ander twee afdelings, wat op die sabbatdag verlof het, is verantwoordelik vir die tempel en die koning. Julle is sy lyfwag en julle moet hom gedurig met julle wapens beskerm. As iemand by hom probeer uitkom, moet julle die persoon summier doodmaak.” Die offisiere het presies gedoen wat Jojada, die priester, beveel het. Hulle het albei groepe soldate, dié wat op die sabbat aan diens is en dié wat dan van diens af gaan, bymekaargemaak. Hulle het almal by Jojada byeengekom. Hy het vir hulle spiese en skilde gegee wat nog aan koning Dawid behoort het en wat nog altyd in die tempel van die Here gebêre was. Die soldate het die wapens gevat en ’n halfsirkel om die koning gevorm. Die halfsirkel om hom het van die tempel se suidelike hoek, by die brandofferaltaar verby, tot by die noordelike hoek gestrek. So is die koning baie goed beskerm. Toe alles gereed was, het Jojada die jong koning uitgebring. Hy het ’n kroon op sy kop gesit en die kroningsdokument vir hom gegee. Daarna het hulle olie op sy kop uitgegooi en hande geklap en hard uitgeroep: “Mag die koning lank lewe!” Só het hulle vir Joas koning gemaak. Toe Atalia die geraas buite hoor, het sy na die mense in die tempel toe gegaan. Daar sien sy toe die koning op die gebruiklike plek, met die leiers en trompetblasers rondom hom. Die mense was uitbundig en die trompette is geblaas. Atalia was geskok en het haar klere geskeur en ontsteld uitgeroep: “Dis verraad! Verraad!” Jojada het vir die leëroffisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg uit die tempel uit! Moet haar nie hier in die Here se tempel doodmaak nie. Maak enigeen wat haar probeer help, dood!” Hulle het Atalia deur die Perdepoort na die paleis geneem en haar daar doodgemaak. Hierna het Jojada die priester ’n paar ooreenkomste gesluit: tussen die Here en die koning en die volk - dat hulle die Here sal dien; tussen die koning en die volk. Daarna het al die mense na die Baältempel toe gegaan en dit begin afbreek. Hulle het die altare en die afgodsbeelde stukkend gebreek. Toe het hulle vir Mattan, die Baäl-priester, reg voor die altare doodgemaak. Jojada het wagte by die tempel aangestel. Daarna het hy en al die soldate en die hele volk die koning deur die Poort van die Voetsoldate na die paleis geneem. Die koning het op die koninklike troon gaan sit. Die mense van die land was uitbundig bly, terwyl die stadsbewoners rustig gebly het, al is Atalia in die paleis doodgemaak. Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Dit was in die sewende jaar wat Jehu in Israel regeer het. Joas het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba. Joas se optrede het die Here tevrede gestel, want hy is mos deur die profeet Jojada opgelei. Daar was net een fout: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om daar diere te gaan offer en om wierook te brand. Joas het vir die priesters gesê om al die geld bymekaar te maak wat die mense na die tempel toe bring, of dit nou belasting was en of hulle dit vrywillig gebring het. Die priesters kon dié geld hou, maar hulle moes dit ook gebruik om die tempel te restoureer waar daar swak plekke was. Toe Joas 23 jaar lank koning was, het die priesters nog nie die swak plekke aan die tempel herstel nie. Joas het Jojada en die ander priesters byeengeroep en gevra: “Waarom het julle nie die tempel herstel nie? Van nou af mag julle nie meer die tempelbydraes vir julleself gebruik nie. Dit moet alles gaan vir die restourasie van die tempel.” Die priesters het ingestem: hulle sou nie meer die bydraes ontvang nie, maar dan sou hulle ook nie meer verantwoordelik wees vir die herstel van die tempel nie. Jojada die priester het ’n gat in die deksel van ’n groot kis gemaak en dit regs van die altaar by die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat die tempel se ingang bewaak het, het almal se bydraes in die kis gegooi. As hulle sien die kis raak vol, het die staatsekretaris en die hoëpriester die geld wat tempel toe gebring is, getel en in sakkies gesit. Hulle het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te restoureer. Die kontrakteurs het skrynwerkers, bouers, messelaars en klipkappers aangestel om die herstelwerk aan die gebou te doen. Hulle moes hout en bouklippe voorsien om die vervalle dele van die gebou te herstel. Al dié kostes is uit die tempelbydraes betaal. Die geld is glad nie gebruik vir silwerbakke, messe, komme, trompette of enige gereedskap van goud of silwer nie. Dit is slegs gebruik om vir die restourasie van die tempel te betaal. Daar is ook nie van die kontrakteurs verwag om verslag oor die geld te doen nie. Hulle het hulle werk in goeie trou gedoen. Geld wat van skuld- en sondeoffers afkomstig was, is nie vir die herstel van die tempel gebruik nie. Dit was die priesters s’n. In dié tyd het Hasael, die koning van Aram, die dorp Gat aangeval en oorwin. Toe het hy besluit om Jerusalem aan te val. Joas, die koning van Juda, het besluit om Hasael te probeer afkoop. Hy het al die gewyde goed wat sy voorgangers, Josafat, Joram en Ahasia, bymekaargemaak het en al sy eie gewyde gawes én al die goud en silwer in die stoorkamers van die tempel van die Here en die paleis gevat en dit vir Hasael gestuur. Dit het Hasael toe van Jerusalem af laat wegtrek. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Van sy amptenare het teen hom in opstand gekom en hom by Bet-Millo, langs die pad na Silla toe, doodgemaak. Die moordenaars was Sabad, die seun van Simat, en Josabat, die seun van Somer. Na sy dood is Joas by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Amasia opgevolg. In die 23ste jaar wat koning Joas in Juda regeer het, het Joahas, die seun van Jehu, koning in Israel geword. Hy het sewentien jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met Joahas se optrede nie. Hy het aangehou met die sonde wat Jerobeam Israel laat doen het. Daarom het die Here se woede Israel getref, want Hy het toegelaat dat Gasael, die koning van Aram, en sy seun Ben-Hadad Israel gereeld verslaan. Joahas het by die Here gepleit om hulp. Die Here het sy gebed verhoor, want Hy kon sien hoe erg die Arameërs Israel verdruk. Die Here het vir Israel ’n redder gegee wat hulle van die Aramese onderdrukking kon verlos. Daarna kon hulle weer soos vroeër in vrede lewe. Hulle het egter aangehou met die sonde wat by Jerobeam begin het. Hulle het selfs die Asjerabeeld in Samaria laat bly staan. Uiteindelik het Israel se leër gekrimp tot ’n skamele 50 ruiters, tien strydwaens en 10 000 voetsoldate. Die Arameërs het die ander doodgemaak en die leër van Israel soos stof vertrap. Die res van Joahas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is hy in Samaria begrawe en sy seun Joas het hom opgevolg. In die 37ste jaar van koning Joas van Juda se regering het Joas, die seun van Joahas, koning in Israel geword. Hy het sestien jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met Joas se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam Israel laat doen het. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe en Jerobeam II het hom opgevolg. Toe Elisa dodelik siek aan sy laaste siekte gelê het, het koning Joas van Israel na hom toe gekom. Joas het gehuil en vir Elisa gesê: “My vader! My vader! U is vir Israel soos ’n strydwa met sy ruiters!” Elisa het vir hom gesê: “Vat jou pyl en boog.” Die koning het dit gedoen en toe sê Elisa: “Sit nou jou hande op die boog.” Hy het dit ook gedoen. Toe sit Elisa sy hande bo-oor die koning se hande. Daarop sê Elisa: “Maak die venster na die oostekant toe oop!” Die koning het dit gedoen. Toe sê Elisa: “Skiet!” Toe hy geskiet het, sê Elisa: “Dit is die Here se pyl van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs volkome by Afek verslaan. Vat nou die ander pyle en slaan hulle teen die grond.” Die koning het die pyle gevat en drie keer teen die grond geslaan. Dit het Elisa kwaad gemaak en hy het vir die koning gesê: “Jy moes ten minste vyf of ses keer teen die grond geslaan het! Dan sou jy die Arameërs behoorlik verslaan het. Nou sal jy hulle net drie keer verslaan.” Daarna is Elisa dood en hulle het hom begrawe. Bendes uit Moab het Israel elke lente binnegeval. Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle een van die bendes opmerk. Hulle het die lyk toe sommer in Elisa se graf gegooi. Toe sy liggaam aan Elisa se bene raak, het hy lewendig geword en opgestaan! Koning Gasael van Aram het Israel gedurende Joahas se hele regeringstyd onderdruk. Maar die Here was die Israeliete genadig sodat hulle nie heeltemal vernietig is nie. Hy het hulle ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob jammer gekry en tot nog toe nie vernietig en verwerp nie. Gasael, die koning van Aram, is dood en sy seun Ben-Hadad het hom opgevolg. Joas, die seun van Joahas, het die Israelitiese stede van Ben-Hadad teruggeneem wat Ben-Hadad se pa Gasael vroeër van Joahas verower het. Joas het Ben-Hadad drie keer verslaan en só die stede van Israel teruggeneem. Amasia, die seun van Joas, het koning van Juda geword. Dit was in die tweede jaar wat koning Joas, die seun van Joahas, in Israel regeer het. Amasia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan, afkomstig uit Jerusalem. Wat Amasia gedoen het, het die Here tevrede gestel, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het dieselfde dinge as sy pa Joas gedoen: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Toe die mag stewig in Amasia se hande gevestig was, het hy die amptenare wat sy pa vermoor het, laat doodmaak. Hy het egter nie hulle kinders laat doodmaak nie, want die Here verbied dit in die wetboek van Moses. Daar staan dat ’n ouer nie vir die oortreding van ’n kind, of ’n kind vir die oortreding van ’n ouer die doodstraf kan kry nie. Elkeen moet vir sy eie oortredings gestraf word. Dit was Amasia wat 10 000 Edomiete in die Soutdal verslaan het. Hy het ook die dorp Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit nou nog genoem word. Op ’n dag het Amasia boodskappers na koning Joas van Israel, die seun van Joahas en kleinseun van Jehu, gestuur. Die boodskap was: “Kom, laat ons teen mekaar veg!” Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou én die mense van Juda net ongeluk kan bring?” Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak. Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort. Toe het hy die stad geplunder: hy het al die goud en silwer wat hy kon kry, gevat, asook die waardevolle goed in die tempel en die stoorkamers van die paleis. Hy het dit, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe. Jerobeam II het hom opgevolg. Amasia het ná Joas se dood nog vyftien jaar lank gelewe. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar is ’n komplot in Jerusalem teen Amasia gesmee en hy het na Lagis toe gevlug. Die samesweerders het die moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem, waar hy in sy familiegraf in die Stad van Dawid begrawe is. Al die mense van Juda het toe Amasia se sestienjarige seun Asarja koning gemaak in sy pa se plek. Na sy pa se dood het Asarja die stad Elat herbou en dit vir Juda teruggeneem. In die vyftiende jaar wat koning Amasia in Juda regeer het, het Jerobeam II, die seun van Joas, koning in Israel geword. Hy het 41 jaar in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met Jerobeam II se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. Maar tog het hy al die grond wat Israel verloor het, teruggeneem. Hy het Israel se grense van Lebo-Hamat af tot by die Dooie See herstel. Dit het gebeur volgens die uitspraak van die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona, die seun van Amittai, uit die dorp Gat-Gefer. Die Here het die bitter lyding van die Israeliete gesien. Hulle was heeltemal gedaan, want daar was niemand wat hulle kon help nie. Aangesien die Here nie besluit het om Israel van die aardbodem af weg te vee nie, het Hy Jerobeam II, die seun van Joas, gebruik om hulle te red. Die res van Jerobeam II se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, ook sy dapperheid in gevegte en hoe hy Damaskus en Hamat vir Israel teruggeneem het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is Jerobeam II by die konings van Israel begrawe. Hy is deur sy seun Sagaria opgevolg. In die 27ste jaar wat koning Jerobeam II in Israel regeer het, het Asarja, die seun van Amasia, koning in Juda geword. Asarja was sestien toe hy koning geword het en hy het 42 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, en uit Jerusalem afkomstig. Die Here was tevrede met wat Asarja gedoen het, net soos dit met sy pa Amasia ook die geval was. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Die Here het die koning met ’n velsiekte getref, wat hom tot by sy dood geteister het. Hy het in afsondering in ’n plek van sy eie gewoon. Intussen is sy seun Jotam in bevel van die paleis geplaas en het hy ook die land regeer. Die res van Asarja se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Na sy dood is hy by die konings van Juda in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg. In die 38ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Sagaria, die seun van Jero- beam II, koning in Israel geword. Hy het ses maande lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. Sallum, die seun van Jabes, het teen Sagaria in opstand gekom en ’n staatsgreep uitgevoer. Hy het Sagaria in die openbaar doodgemaak en in sy plek koning geword. Die res van Sagaria se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. So het die Here se belofte aan Jehu waar geword. Hy het hom beloof dat daar tot in die vierde geslag iemand uit sy nageslag in Israel sou regeer. Sallum, die seun van Jabes, het koning in Israel geword in die 39ste jaar wat koning Asarja van Juda regeer het. Hy het ’n maand lank in Samaria regeer. Menahem, die seun van Gadi, het toe uit Tirsa opgeruk en Sallum in Samaria aangeval. Hy het Sallum doodgemaak en in sy plek koning geword. Die res van Sallum se geskiedenis, insluitend die staatsgreep wat hy uitgevoer het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. In dié tyd het Menahem die dorp Tifsag aangeval. Aangesien hulle nie die poorte wou oopmaak nie, het hy die stad en die hele omgewing tot by Tirsa se mense doodgemaak en die swanger vroue oopgesny. In die 39ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Menahem, die seun van Gadi, koning in Israel geword. Hy het tien jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië Israel in dié tyd aanval, het Menahem hom 34 ton silwer betaal. In ruil sou Tiglat-Pileser Menahem se koningskap in Israel steun. Menahem het die geld in die hande gekry deur die land se ryk mense ’n spesiale belasting te laat betaal. Elkeen was verplig om 570 gram silwer betaal. Ná die betaling het Tiglat-Pileser besluit om nie die land aan te val nie, en is terug na sy eie land toe. Die res van Menahem se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Menahem het gesterf en is deur sy seun Pekahia opgevolg. In die 50ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Pekahia, die seun van Menahem, koning in Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. Remalja se seun Peka, wat Pekahia se adjudant was, het ’n staatsgreep teen Pekahia uitgevoer. Hy en 50 soldate uit Gilead het vir Pekahia, Argob en Arje in die paleis in Samaria doodgemaak. Peka het toe in Pekahia se plek koning geword. Die res van Pekahia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. In die 52ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Peka, die seun van Remalja, koning in Israel geword. Hy het twintig jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. In Peka se tyd het Tiglat-Pileser van Assirië Israel weer aangeval. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor ingeneem. Daarby het hy die streke Gilead en Galilea, die hele stamgebied van Naftali, afgeneem en die mense as gevangenes na Assirië weggeneem. Ela se seun Hosea het intussen ’n staatsgreep teen Peka beplan. Hy het hom aangeval en doodgemaak en in sy plek koning geword oor Israel. Dit het gebeur in die twintigste jaar wat koning Jotam van Juda, Asarja se seun, regeer het. Die res van Peka se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. In die tweede jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Jotam, die seun van Asarja, koning in Juda geword. Jotam was 25 toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, ’n dogter van Sadok. Die Here was tevrede met wat Jotam gedoen het, soos dit met sy pa Asarja die geval was. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Dit was Jotam wat die Boonste Poort van die tempel van die Here herstel het. Die res van Jotam se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Dit was in dié tyd dat die Here begin het om Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja, te stuur om Juda aan te val. Na sy dood is Jotam by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg. In die sewentiende jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Agas, die seun van Jotam, koning in Juda geword. Agas was twintig toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Agas gedoen het nie, nie soos die geval was met koning Dawid, sy voorvader nie. Hy het dieselfde dinge gedoen as die konings van Israel en selfs verder gegaan. Hy het sy seun as ’n offer laat verbrand en so die afstootlike praktyke gevolg van die volke wat voor die Israeliete in die land gewoon het en wat deur die Here uit die land verdryf is. Hy het by die heidene se heilige plekke op die heuwels en onder elke groen boom diere geoffer en wierook gebrand. In daardie tyd het Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja Juda aangeval. Hulle het Jerusalem beleër, maar kon nie die stad inneem nie. Resin het egter Elat vir Aram teruggeneem en die Judeërs daaruit verjaag. Daar het toe Edomiete in die stad gaan bly. Hulle woon vandag nog daar. Koning Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur en vir hom gesê: “Ek is u dienaar en u onderdaan. Kom help my asseblief om die Arameërs en Israeliete se aanval af te slaan.” Agas het die silwer en goud wat oor was in die Here se tempel en die stoorkamers van die paleis bymekaargemaak en dit as ’n geskenk aan die Assiriese koning gestuur. Tiglat-Pileser het besluit om Agas te help. Hy het die Aramese hoofstad Damaskus aangeval en die inwoners na Kir weggevoer. Hy het ook vir koning Resin doodgemaak. Agas het Damaskus toe gereis om Tiglat-Pileser te gaan ontmoet. In Damaskus het hy ’n altaar gesien wat dadelik sy belangstelling gewek het. Hy het die afmetings en ’n model van die altaar aan die priester Urija gestuur en hom beveel om ’n replika daarvan te maak. Urija het die opdrag sorgvuldig uitgevoer en ’n altaar presies soos die een in Damaskus voltooi nog voordat Agas uit Damaskus terug was. Toe Agas in Jerusalem kom, het hy na die altaar gaan kyk en verskillende offers daarop gebring: hy het ’n dier as offer op die altaar verbrand en ’n offer van graan gebring; hy het drank as offer oor die altaar gegooi en die bloed van ’n vredesoffer daaraan gesmeer. Agas het die bronsaltaar wat voor die tempel tussen die nuwe altaar en die tempel gestaan het, uitgehaal en dit noord van die nuwe altaar laat neersit. Agas het vir Urija gesê: “Van nou af moet jy alle offers hier op die groot altaar uitvoer: alles wat in die oggend en in die aand vir die Here verbrand word, die diere, graan én drank, moet hier verbrand word. Al die bloed van die offerdiere wat teen ’n altaar gegooi moet word, moet van nou af teen hierdie altaar gegooi word. Die ou bronsaltaar sal voortaan net vir my eie gebruik wees.” Urija het presies gedoen wat koning Agas hom beveel het. Agas het ook die syplate en wasbakke van die waterwaentjies weggevat. Hy het ook die groot waterbak, die “See”, van die beesbeelde van brons waarop dit gerus het, afgehaal en op die klipvloer neergesit. Om sy ondergeskiktheid aan die Assiriese koning te bewys, het Agas die oordekte gang wat vroeër by die tempel aangebou is en net deur die koning op die sabbatdae gebruik is, laat afbreek. Hy het ook die spesiale koninklike ingang tot die tempel laat toemaak. Die res van Agas se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Na sy dood is Agas by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Hiskia het hom opgevolg. In die twaalfde jaar wat koning Agas in Juda regeer het, het Hosea, die seun van Ela, koning in Israel geword. Hy het nege jaar lank in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie, maar dit was nie so erg soos party van sy voorgangers s’n nie. Koning Salmaneser van Assirië het teen Israel oorlog kom maak. Hosea het hom aan Salmaneser onderwerp en begin om jaarliks belasting te betaal. Koning Hosea het teen Assirië in opstand gekom en twee dinge gedoen: hy het met koning So van Egipte onderhandel oor samewerking en hy het opgehou om sy belasting aan die Assiriërs te betaal. Toe die koning van Assirië dit uitvind, het hy Hosea onmiddellik gevang en in die tronk gegooi. Daarna het die Assiriese koning die hele land binnegeval en Samaria drie jaar lank beleër. In die negende jaar wat Hosea regeer het, het die Assiriese koning Samaria ingeneem. Hy het die mense van Israel na Assirië geneem en hulle in die stad Galag, langs die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van die Mediërs hervestig. Die ramp het Israel getref omdat hulle téén die wil van die Here hulle God opgetree het. Hy het hulle vrygemaak toe hulle in Egipte deur die farao onderdruk is, maar hulle het ander gode aanbid. Hulle het die gebruike gevolg van die heidense volke wat deur die Here uit die land gejaag is om vir Israel plek te maak, gebruike wat gevolg is deur die konings van Israel. Die Israeliete het al die tyd in die geheim dinge gedoen wat die Here nie goedgekeur het nie. Hulle het: heidense heiligdomme gebou waar hulle ook al gebly het, van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad; op elke rantjie en onder al die groen bome klippilare en heilige Asjerapale ingeplant; net soos die mense wat voor hulle in die land gewoon het, offers by die heilige plekke gebrand (só het hulle die Here al hoe kwater gemaak vir hulle); vieslike afgode vereer, al het die Here uitdruklik gesê hulle mag dit nie doen nie. Die Here het Israel én Juda deur profete en spesiale boodskappers gewaarsku: “Julle moet ophou met julle verkeerde dinge en na My toe terugkom. Wees gehoorsaam aan die wette en reëls wat Ek reeds lank gelede aan julle voorouers gegee het. Ek het dit weer deur die profete direk vir julle gegee.” Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie. Hulle het: die Here se reëls verwerp; sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp; sy waarskuwings in die wind geslaan; nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle; opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen. Hulle het al die wette van die Here, hulle God, oortree deur: twee kalwerbeelde te laat maak; ’n afbeelding van die godin Asjera te laat maak; voor die hemelgode neer te buig; die god Baäl te vereer; hulle seuns en dogters in die vuur te offer; waarsêery te beoefen; die toekoms te voorspel. Só het hulle hulleself aan die boosheid oorgegee en die Here al hoe kwater vir hulle gemaak. In sy woede het die Here besluit om Israel te vernietig. Al wat oorgebly het, was die stam van Juda. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen. Die Here het toe Israel se hele nageslag verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan hulle vyande totdat dié hulle vernietig het. Toe die Here destyds vir Israel van die koninkryk van Dawid laat wegbreek het, het hulle Jerobeam, die seun van Nebat, koning gemaak. Hy het die Israeliete van die Here af weggelei en hulle afgode laat dien. Hulle het net nooit opgehou om soos Jerobeam die afgode te dien nie, totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is. Die koning van Assirië het ander mense in Israel hervestig. Hulle was afkomstig uit stede soos Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim. Hulle het in Samaria en die stede daar rondom gaan woon en die land beset. Aan die begin het die nuwe inwoners nie die Here gedien nie. Hy het toe leeus onder hulle ingestuur om party van hulle dood te maak. Die volgende boodskap is toe na die koning van Assirië gestuur: “Die mense wat u in die omgewing van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te eer nie. Nou het Hy leeus gestuur wat onder hulle maai omdat hulle Hom nie reg dien nie.” Die Assiriese koning het toe beveel: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is terug Israel toe. Hy kan die nuwe mense leer hoe om die God van die land reg te eer.” So het een van die priesters teruggekom na Israel toe en in Bet-El gaan woon. Hy het die mense geleer hoe hulle die Here moet eer. Die mense uit die vreemde volke het egter aangehou om ook elkeen hulle eie gode te dien in die stede waar hulle te lande gekom het. Hulle het beelde van hulle eie gode by die heilige plekke wat die Israeliete nog gebou het, gaan neersit. Die volgende gode is vereer: Sukkot-Benot deur die mense van Babel; Nergal deur die mense van Kuta; Asima deur die mense van Hamat; Nibgas en Tartak deur die mense van Awwa; Adrammelek en Anammelek deur die mense van Sefarwajim. Dié mense het selfs hulle kinders as offers vir die twee gode verbrand. Die nuwe mense het die Here ook vereer, maar hulle het self vir hulle priesters aangestel om by die heilige plekke vir hulle offers te bring. Terwyl hulle die Here gedien het, het hulle ook aangehou met die godsdienstige gebruike waaraan hulle voorheen gewoond was. Dit gaan vandag nog so aan. Hulle hou by hulle tradisionele gebruike in plaas daarvan om die Here werklik te dien. Hulle behoort sy wette, reëls en riglyne te gehoorsaam, soos Hy dit vir die nageslag van Jakob, wie se naam Hy na Israel verander het, beveel het. Die Here het met die nageslag van Jakob ’n ooreenkoms aangegaan. Hy het gesê: “Moenie ander gode op enige manier vereer nie, moenie voor hulle buig of vir hulle offers bring nie. Julle mag net die Here vereer. Dit is Hy wat sterk genoeg was om julle uit Egipte te bevry. Hóm mag julle vereer deur voor Hom te buig en offers te bring. Die wette, reëls en riglyne wat Hy vir julle voorgeskryf het, moet julle gehoorsaam. Julle mag nie ander gode dien nie. Onthou van die ooreenkoms wat Ek met julle gesluit het en moenie ander gode vereer nie. Julle mag net die Here, julle God, vereer. Hy is die Een wat julle van julle vyande sal red.” Maar die mense het nie geluister nie. Hulle het aangehou met hulle ou gebruike. So het hulle die Here wel vereer, maar tegelyk ook hulle afgode bly dien. Hierin is hulle deur hulle kinders en kleinkinders nagevolg en dit hou vandag nog so aan. In die derde jaar wat koning Hosea seun van Ela in Israel regeer het, het Hiskia, die seun van Agas, koning in Juda geword. Hiskia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi, ’n dogter van Sagaria. Die Here was net so tevrede met sy optrede as wat Hy met koning Dawid was. Hiskia het: die heidense heiligdomme verwoes; die klippilare omgegooi en gebreek; die Asjerastompe uitmekaargeslaan; die bronsslang, wat Moses nog gemaak het, vernietig. Dit was nodig om die slang tot niet te maak omdat die Israeliete dit as ’n afgod begin vereer het deur offers daarvoor te bring. Hulle het die bronsslang Negustan genoem. Hiskia het die Here, Israel se God, vertrou. Daar was nie vóór hom of ná hom so ’n koning in Juda soos hy nie. Hy was baie lojaal aan die Here en het getrou al die wette nagekom wat die Here aan Moses gegee het. Die Here het Hiskia ook bygestaan sodat hy suksesvol was in alles wat hy aangepak het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en geweier om aan hom belasting te betaal. Hy het ook teen die Filistyne geveg en hulle verslaan. Hiskia het Gasa met sy hele gebied ingeneem: van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad. Gedurende die vierde jaar wat Hiskia regeer het (dit was in Hosea van Israel se sewende jaar), het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die hoofstad Samaria van die buitewêreld afgesny. Drie jaar later, in Hiskia se sesde jaar en Hosea se negende jaar, het hulle Samaria ingeneem. Die Assiriese koning het die Israeliete as gevangenes na Assirië weggevoer. Hulle is in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië hervestig. Dit het gebeur omdat hulle nie gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Hulle het die ooreenkoms wat die Here deur sy dienaar Moses met hulle gesluit het, verbreek. Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie. Gedurende die veertiende jaar wat Hiskia regeer het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval en al die versterkte stede ingeneem. Hiskia het dadelik ’n boodskap na die Assiriese koning in Lagis gestuur. Hy het vir Sanherib gesê: “Ek was verkeerd. Trek tog u leër terug en watter boete u my ook al oplê, sal ek betaal.” Sanherib het toe byna tien ton silwer en ’n ton goud van hom geëis. Hiskia het al die silwer gevat wat hy in die tempel en die paleis se stoorkamers kon kry. Om genoeg goud te kry moes hy die goud afhaal wat hy self nog aan die deure en kosyne van die tempel vasgeslaan het. Hy het toe al die silwer en goud aan die koning van Assirië besorg. Daarna het die Assiriese koning tog die hoof van sy leër en twee baie hoë amptenare met ’n leërafdeling van Lagis af na Hiskia in Jerusalem gestuur. Die Assiriese afvaardiging het by die watervoor gestop wat water na die boonste dam bring. Dit is naby die pad na die stuk veld waar hulle materiaal gebleik het. Hulle het koning Hiskia laat roep, maar hy het drie amptenare gestuur om met hulle te onderhandel. Die drie was: Eljakim, Gilkija se seun wat hoof van die paleishuishouding was; Sebna, die staatsekretaris, en Joag, Asaf se seun, die staatshistorikus. Die hoofgesant van die Assiriese koning het die volgende boodskap aan Hiskia gestuur: “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap: Op wie vertrou jy miskien dat jy so selfversekerd is? Dink jy dalk jou woorde is ’n antwoord op my militêre strategie en krag? Op wie steun jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom? “Dink jy Egipte gaan jou teen my help? Egipte is net so min werd soos ’n geknakte riet wat ’n mens as kierie probeer gebruik. As jy op hom druk, steek hy deur jou hand. Die koning van Egipte het al sy vriende nog altyd in die steek gelaat. “Of dink julle dalk by julleself: ‘Ons vertrou op die Here, ons God’? Julle spot seker! Hiskia het Hom mos beledig en al sy altare en heilige plekke afgebreek. Toe het Hiskia self beveel: ‘Almal in Juda mag die Here net by die heiligdom in Jerusalem kom aanbid.’ “Kom ons maak ’n weddenskap! My baas, die koning van Assirië, sal vir jou 2 000 perde gee, as jy 2 000 ruiters het om hulle te ry. Jy sal met jou weermaggie nie eers teen die swakste afdeling van die Assiriese leër kan veg nie. Selfs al hoop jy dat Egipte se ruiters en strydwaens jou sal kom help, sal julle niks kan uitrig nie. “Dink jy miskien ons het jou land sonder die Here se leiding aangeval? Hy het self vir ons gesê: ‘Gaan val hulle aan en vernietig die land!’” Eljakim, Sebna en Joag het by die Assiriese gesant gepleit: “Praat asseblief Aramees met ons, want ons verstaan dit. Moenie Hebreeus praat nie, want ons mense op die mure sal hoor wat u vir ons sê.” Die hoofgesant het geantwoord: “Dink julle my koning het ons gestuur om net met julle of julle koning te praat? Hy wil hê almal in Jerusalem moet die boodskap hoor. As julle nie oorgee nie, gaan ons julle stad beleër. Die mense van Jerusalem gaan nog so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting gaan eet en hulle eie water gaan drink!” Die Assiriese hoofgesant het toe baie hard in Hebreeus vir die mense van Jerusalem geskree: “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap. Hy sê: Moenie na Hiskia luister nie! Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie. Moet hom ook nie vertrou as hy sê nie: ‘Die Here sal ons red! Hy sal nie toelaat dat die Assiriese koning die stad verower nie.’ “Moenie na Hiskia luister nie! Die koning van Assirië bied die volgende voorwaardes vir vrede aan: Maak die hekke oop en kom uit die stad uit. Dan sal ek elkeen toelaat om vrugte uit sy eie tuin te eet en water uit sy eie put te drink. Daarna sal julle na ’n ander land geneem word wat goed met Juda vergelyk. Daar sal graan en druiwe wees vir kos en wyn, met olywe en heuning. Dit is ’n land van oorvloed. Kies om te bly lewe, anders gaan ek julle doodmaak! “Moenie na Hiskia luister as hy julle mislei deur te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander land al ooit hulle mense van die koning van Assirië gered? Dink maar aan die gode van Hamat en Arpad, of die gode van Sefarwajim, Hena of Awwa. Wie kon Samaria teen my beskerm? Noem vir my een enkele god wat sy land teen my mag kon beskerm. Hoe kan julle dan dink dat die Here Jerusalem teen my sal kan beskerm?” Die soldate het net stilgebly, want Hiskia het hulle beveel om die Assiriërs glad nie te antwoord nie. Die Judese onderhandelaars Eljakim, Sebna en Joag was baie ontsteld. Hulle het hulle klere geskeur en na Hiskia toe gegaan om vir hom te vertel wat die Assiriese hoofgesant alles gesê het. Toe koning Hiskia die boodskap hoor, het hy ook van ontsteltenis sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en tempel toe gegaan. Daarop stuur hy toe vir Eljakim, Sebna en die leiers van die priesters na die profeet Jesaja, Amos se seun. Die hele afvaardiging het rouklere aangehad. Hulle het vir Jesaja gesê: “Hier is die koning se boodskap: ‘Vandag is hier net moeilikheid. Ons is beledig en verneder. Die situasie is so kritiek soos dié van ’n vrou wat in kraam is, maar wat nie krag het vir die geboorte nie. Miskien sal die Here, u God, reageer op die neerhalende boodskap wat Assirië se koning deur sy hoofgesant vir ons gestuur het. Hy het die Here self beledig. Miskien sal die Here, u God, hulle straf vir hulle verwaandheid. Maar u moet asseblief bid vir ons klein klompie wat nog oorgebly het.’” Hiskia se amptenare het die boodskap vir Jesaja gegee. Hy sê toe vir hulle: “Hierdie boodskap van God is vir koning Hiskia bedoel. Die Here sê: ‘Moenie bekommerd wees oor die manier waarop die Assiriese afvaardiging met My gespot het nie. Jy kan maar weet Ek gaan teen hulle optree. Die Assiriese koning gaan ’n boodskap van die huis af kry wat hom sal laat besluit om huis toe te gaan. Ek sal dan sorg dat hy daar in sy eie land vermoor word.’” Die Assiriese hoofgesant het intussen teruggegaan na sy koning toe. Hy was nie meer by Lagis nie, maar het die dorp Libna aangeval. Kort daarna het koning Sanherib ’n boodskap gekry dat koning Tirhaka van Etiopië op pad was om hom aan te val. Voordat hy daarop gereageer het, het hy nog gou weer die volgende boodskap vir Hiskia in Jerusalem gestuur: “Dié boodskap is vir koning Hiskia van Juda bedoel: Moenie dat die God op wie jy vertrou jou mislei as Hy jou belowe dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie. Jy weet mos dat die Assiriërs elke land wat hulle aangeval het, oorwin het. Waarom sal dit nou anders wees met julle? Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin. Wat het van die konings van Hamat en Arpad geword? Wat het met die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa gebeur?” Toe Hiskia die brief van die boodskappers af kry, het hy dit gelees. Daarna het hy tempel toe gegaan en dit voor die Here oopgesprei. Toe bid hy: “O Here wat die Groot Bevelvoerder is, God van Israel, U regeer oor alles. U is die God van alle koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Luister asseblief tog na my gebed! Kyk bietjie, Here. Hoor net wat Sanherib alles sê, hoe hy die lewende God beledig! “Dit is natuurlik waar wat hy in sy brief sê, Here: die Assiriërs hét al die volke wat hy noem, oorwin. En hulle hét al die volke se gode omgegooi en verbrand. Maar hulle kon dit doen, want daardie gode is nie regtig gode nie! Daardie gode was sommer afgode wat mense uit hout en klip gemaak het. Ag, Here! Red ons tog uit die koning van Assirië se mag. As U dit doen, sal al die regerings op aarde weet dat U die enigste God is.” Jesaja het toe vir Hiskia laat weet: “Die Here sê Hy het gehoor wat jy Hom oor Sanherib, die Assiriese koning, gevra het. Hier is die Here se antwoord oor Sanherib: Jerusalem verag jou en lag jou uit, skud die kop minagtend as jy wegvlug. Wie dink jy het jy belaster en bespot? “Dit was die Heilige Een van Israel! “Deur jou boodskappers het jy gespog en gesê: ‘Ék het die hoogste berge, die verste pieke van die Libanon oorwin, ek het die heel hoogste seders en die heel mooiste sipresbome afgekap en tot in die diepste woude ingedring. ‘Ék het in vreemde lande putte gegrawe en die water gedrink, in Egipte riviere opgedam en met droë voete daardeur geloop.’ “Wéét jy dan nie, Sanherib? Het jy nie gehoor nie? Ék het dié dinge baie lank gelede al beplan. Nou het Ek dit alles laat gebeur: Jy moes vestingstede aanval en verwoes, daarom was hulle inwoners so kwesbaar en onvoorbereid op wat hulle sou tref soos grassprietjies wat bo-op ’n dak opslaan en dadelik doodgaan as die son skyn. “Sanherib, Ek ken jou baie goed. Ek weet presies wat jy doen. Ek weet selfs hoe jy teen My geraas en gevloek het. Daarom sal Ek jou met ’n ring deur die neus versier soos ’n koning wat verloor het en ’n toom in jou bek sit en jou op dieselfde pad terugjaag as waarlangs jy hierheen gekom het!” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n teken vir jou: dié jaar sal julle net die koring kan eet wat self opslaan. Volgende jaar sal dit weer so wees, maar in die derde jaar sal julle self kan saai en oes. Julle sal weer wingerde kan plant en druiwe eet. Dié van julle wat die aanval oorleef het, sal dan weer normaal kan aangaan. Daar sal beslis oorlewendes uit Jerusalem kan uitgaan. Daarvoor sal die Here wat die Groot Bevelvoerder is, se groot liefde sorg. “Hier is die Here se boodskap oor die koning van Assirië: hy sal Jerusalem nie aanval of beleër nie. Hy sal nie eers ’n pyl na die stad toe skiet of probeer om in die stad in te kom nie. Hy sal met dieselfde pad teruggaan as die een waarmee hy hierheen gekom het. En hy sal Jerusalem nooit ingaan nie, want die Here sê: ‘Ek sal die stad oppas en red ter wille van die goeie verhouding wat daar tussen My en Dawid was.’” Daardie nag het die Here 185 000 Assiriese soldate laat doodgaan. Toe die res die volgende oggend wakker word, was daar net lyke rondom hulle. Sanherib het onmiddellik sy kamp afgebreek en na sy hoofstad Nineve toe teruggegaan en daar gebly. Terwyl hy op ’n dag in sy god Nisrok se tempel besig was om te bid, het twee van sy seuns, Adrammelek en Sareser, hom vermoor. Hulle twee het toe na die Araratgebied gevlug en ’n ander seun, Esarhaddon, het hom as koning opgevolg. In dié tyd het Hiskia baie ernstig siek geword. Die profeet Jesaja het hom gaan besoek en vir hom gesê: “Ek het vir jou ’n boodskap van die Here af. Hy sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie weer gesond word nie.” Hiskia het op sy sy gedraai en na die muur gekyk. Toe het hy gebid: “Here, onthou tog dat ek altyd probeer doen het wat U wou hê.” Daarna het hy in trane uitgebars. Nog voordat Jesaja oor die middelste plein geloop het, het hy weer ’n boodskap van die Here gekry: “Gaan terug na Hiskia, my volk se leier, en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Dawid, sê Hy het na jou gebed geluister en gesien hoe jy gehuil het. Hy sê: Ek het besluit om jou gesond te maak. Oormôre sal jy reeds weer tempel toe kan gaan. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe en vir jou én vir Jerusalem beskerm teen die mag van die Assiriese koning. Ek doen dit om my eer te beskerm en ter wille van Dawid, wat vir My iemand baie spesiaal is.’” Jesaja vra toe: “Bring vir my saamgeperste droë vye.” Hulle het dit op die sweer gesit en Hiskia het gesond geword. Intussen het Hiskia vir Jesaja gevra: “Is daar ’n teken om te bevestig dat ek gesond sal word en weer tempel toe sal kan gaan?” Jesaja antwoord hom toe: “Ja, die Here het ’n teken gegee. Jy kan kies of die skaduwee op die trap tien trappe vorentoe of terug moet gaan.” Hiskia sê toe: “Die skaduwee beweeg die hele tyd vorentoe. Laat dit as ’n teken van die Here se belofte tien trappe terugbeweeg.” Jesaja het toe ernstig gebid en die Here het die skaduwee op die trappe wat Agas gebou het, tien trappe terug laat beweeg. Kort nadat Hiskia so siek was, het Merodag-Baladan, die koning van Babel, briewe en ’n geskenk na hom toe gestuur. Hy het gehoor van Hiskia se siekte en herstel. Hiskia het die afgevaardigdes hartlik ontvang en hulle in Jerusalem rondgewys. Hy het sy skatkamers vir hulle gewys, met al die goud en silwer, speserye en duur geurige olies daarin. Hy het die wapenstore en ander stoorkamers vir hulle gewys. Daar was eintlik niks wat hy nie vir hulle gewys het nie. Jesaja die profeet het toe na Hiskia toe gegaan en gevra wie die besoekers was en waarvandaan hulle gekom het. Hiskia het geantwoord: “Hulle kom uit die ver land, Babel.” “Nou wat het hulle alles in jou paleis gesien?” het Jesaja gevra. “Alles,” het Hiskia geantwoord, “daar is niks wat ek vir hulle weggesteek het nie.” Daarop sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n boodskap vir jou van die Here af: ‘Eendag sal dit gebeur dat al die skatte in jou paleis en alles wat die Judese konings voor jou versamel het, na Babel toe weggedra word. Niks sal hier oorbly nie. Jou eie seuns sal nog Babel toe geneem word om bediendes te word in die koning se paleis.’” Hiskia het Jesaja geantwoord: “Die boodskap van jou is reg so,” maar hy het by homself gedink: “Daar sal ten minste vrede en veiligheid wees so lank as wat ek leef.” Die res van Hiskia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar word ook vertel van die dam en watervoor wat hy laat bou het om water in die stad in te lei. Ná Hiskia se dood het sy seun, Manasse, in sy plek koning geword. Manasse was twaalf toe hy koning geword het en hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba. Die Here was glad nie tevrede met wat Manasse gedoen het nie. Hy het weer die verskriklike dinge gedoen wat die mense wat voor die Israeliete in die land gewoon het, altyd gedoen het. Hy het: die heidense heiligdomme wat sy pa Hiskia verwoes het, weer gebou; altare vir die god Baäl gebou; Asjerastompe gemaak, net soos Agab, Israel se koning, voorheen gedoen het; die hemelgode vereer; selfs binne-in die Here se tempel altare vir afgode gebou, in Jerusalem (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”); in albei portale van die tempel altare vir die hemelgode gebou; sy seun in die vuur geoffer; goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen; die toekoms voorspel deur geeste op te roep. Hy het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het. Een van die dinge is dat hy die Asjerastomp wat hy laat maak het, binne-in die Here se tempel laat opsit het. Dit is die plek waarvan die Here jare tevore al vir Dawid en Salomo gesê het: “Ek kom woon vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete woon. Ek bly daar vir altyd. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en optree volgens die wet wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat woon wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.” Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle mislei om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat vir die Israeliete plek moes maak toe hulle in die land kom woon het. Die Here het toe deur die profete wat vir Hom gewerk het, gesê: “Koning Manasse van Juda het verskriklike dinge gedoen. Hy is selfs slegter as die Amoriete wat voor die Israeliete in die land gewoon het. Hy het sy mense geleer om goed te vereer wat nie gode is nie. Daarom het die Here besluit: Ek gaan sulke verskriklike dinge met Jerusalem en Juda laat gebeur dat mense wat dit hoor, nie sal kan glo wat hulle hoor nie; Ek sal met Jerusalem doen wat Ek met Samaria en met die koningshuis van Agab gedoen het; Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens met ’n vuil skottel maak en hom omkeer; Ek sal die paar mense wat van my volk oorbly, aan hulle vyande oorgee om besteel en uitgeroei te word, omdat hulle aangehou het om verkeerde dinge te doen. Hulle het My bly uitdaag sedert hulle oupas en oumas uit Egipte weg is en hulle doen dit vandag nog steeds.” Manasse het bo en behalwe die verkeerde dinge wat hy Juda laat doen het en waaroor die Here so kwaad was, ook nog onskuldige mense laat vermoor. In Jerusalem het die bloed vrylik gevloei. Die res van Manasse se geskiedenis en die sonde wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Ná sy dood is hy in die tuin van Ussa, ’n deel van die paleistuin, begrawe. Sy seun Amon het in sy plek koning geword. Amon was 22 toe hy koning geword het en hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, ’n dogter van Garus uit Jotba. Die Here was nie tevrede met wat Amon gedoen het nie, net soos die Here nie tevrede was met sy pa, Manasse, se optrede nie. Hy het sy pa se voorbeeld in alle opsigte gevolg en ook die afgode vereer. Hy het hom glad nie aan die Here gesteur nie en niks gedoen wat die Here van hom verwag het nie. ’n Paar van sy amptenare het toe teen hom saamgesweer en hom in die paleis vermoor. Die mense van die land het egter die moordenaars gevang en tereggestel. Hulle het toe Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak. Die res van Amon se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Ná sy dood is hy in die tuin van Ussa begrawe. Sy seun Josia het in sy plek koning geword. Josia was maar agt jaar oud toe hy koning geword het en hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jedida, ’n dogter van Adaja uit Boskat. Wat Josia gedoen het, het die Here baie tevrede gestel. Hy het soos sy voorvader Dawid regeer en dit nie eers oorweeg om iets verkeerds te doen nie. In die agtiende jaar wat Josia koning was, het hy die staatsekretaris Safan na die tempel toe gestuur. Hy het vir hom gesê: “Gaan sê vir die hoëpriester Gilkija hy moet al die geld tel wat die mense tempel toe gebring het en wat die deurwagte bymekaargemaak het. Die geld moet na die kontrakteurs gaan wat moet sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moet die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk doen. Hulle sal skrynwerkers, bouers en messelaars moet huur en hout en gekapte bouklippe moet koop om die tempel te herstel. Dis nie nodig om boek te hou van die geld wat vir die kontrakteurs gegee word nie, want hulle is betroubare mense.” Toe Safan daar by hom kom, sê die hoëpriester Gilkija vir hom: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee en hy het dit gelees. Daarna is Safan na die koning toe terug om verslag te doen: “Ons het die geld vir die kontrakteurs gegee om met die herstelwerk aan die tempel te begin. Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die hoëpriester het hierdie boekrol vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees. Toe Josia hoor wat in die wetboek staan, het hy van ontsteltenis sy klere geskeur. Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija die hoëpriester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê: “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie aan die boek se inhoud gesteur nie. Die Here moet woedend wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.” Hulle is toe na die profetes Gulda toe wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was. Sy het hulle geantwoord: “Hier is ’n boodskap van die Here vir die man wat julle gestuur het. Gaan sê vir hom die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan die stad en sy mense vernietig, net soos dit in die boek staan wat julle gelees het. Hulle het opgehou om My te vereer en ander goed begin dien wat glad nie gode is nie. Ek is woedend daaroor. My woede is soos ’n vuur wat nie meer geblus kan word nie.’” Sy het egter ook gesê: “Hier is ’n persoonlike boodskap van die Here af vir Josia, na aanleiding van die boodskap wat ek nou net vir julle gegee het. Die Here sê vir hom: ‘Ek het gesien hoe jy op die boodskap van die wetboek gereageer het, hoe ontsteld jy was en hoe jy jou klere geskeur en voor My gehuil het toe jy sien watter oordeel die stad en sy mense gaan tref. Omdat jy jou voor My verneder het en jammer is oor alles, sal Ek sorg dat die oordeel jóú nie tref nie. Jy sal gewoonweg sterf en in vrede begrawe word, sonder om die oordeel oor Jerusalem te beleef.’” Gilkija-hulle het die boodskap vir Josia gebring. Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die belangrikes én die onbelangrikes, asook die priesters en die profete het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat Gilkija in die tempel gekry het. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here volgens die wetboek vra. Die hele volk het hulle ook tot die ooreenkoms verbind. Josia het toe met ’n omvangryke hervorming van die godsdiens in Jerusalem begin: Hy het die hoëpriester Gilkija, die priesters net onder hom en die deurwagte opdrag gegee om alles in die tempel bymekaar te maak wat vir Baäl, Asjera of die hemelgode gebruik is. Hulle het dit uitgedra en dit op die terrasse van die Kidronvallei, buite die stad, verbrand. Die as het hy Bet-El toe laat neem. Hy het ook die priesters afgesit wat offers gebrand het op die heidense heilige plekke in Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hulle is vroeër deur die konings van Juda aangestel. Hy het ook ontslae geraak van die priesters wat vir Baäl, Asjera, die son, die maan, die sterrebeelde en die ander hemelgode offers gebrand het. Hy het die Asjerastomp uit die tempel laat haal en dit by die Kidronspruit laat verbrand. Die kole het hy laat fynstamp en die as in die openbare begraafplaas laat uitgooi. Hy het die huise op die tempelterrein laat afbreek wat aan die heilige prostitute behoort het. Dit is waar die vroue materiaal geweef het wat vir die verering van Asjera gebruik is. Hy het al die priesters wat in die stede van Juda vir die Here gewerk het, na Jerusalem toe laat kom. Hy het die heilige plekke waar hulle gewerk het, van Geba af tot by Berseba, tot niet gemaak, asook die heilige plekke by Josua se poort. (Josua was die offisier in bevel van Jerusalem, en sy plek was net links van die stadspoort.) Hierdie priesters mag nie op die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie. Hulle kon egter wel saam met die ander priesters van die ongesuurde brood eet wat net vir priesters bedoel was. Hy het die offerplek in die Ben-Hinnom-dal, waar hulle kinders vir Molek geoffer het, ook laat vernietig, sodat niemand dit ooit weer vir dié doel sou kon gebruik nie. Hy het die perdebeelde vernietig wat by die ingang van die tempel gestaan het. Dit was naby die kamer van Netan-Melek wat by die paleis gewerk het. Vroeëre konings van Juda het beelde gegee om die son te vereer. Hy het ook die waens van die son verbrand. Hy het ook verskeie altare vernietig. Dit sluit in die altare op die dak van Agas se kamer wat die konings van Juda gebou het en die altare wat Manasse in die twee portale van die tempel gebou het. Hy het die altare laat afbreek waar hulle gestaan het en die rommel in die Kidronspruit laat weggooi. Hy het die heilige plekke oos van Jerusalem, suid van die Olyfberg, ook laat vernietig. Dit is die heiligdomme wat Salomo, die koning van Israel, nog gebou het. Hulle was bedoel vir: Astarte, die mense van Sidon se veragtelike godin; Kemos, die mense van Moab se veragtelike god; Milkom, die mense van Ammon se afstootlike god. • Hy het die klippilare gebreek en die Asjerastompe afgekap en die plek met mensbene bestrooi. Josia het ook elders in die land teen heiligdomme opgetree. By Bet-El het hy die heilige plek en altaar afgebreek wat Jerobeam I, seun van Nebat, daar gebou het en waar hy die mense van Israel verkeerd laat doen het. Hy het ook die Asjerastomp verbrand. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en dit op die altaar verbrand. Hierna kon die altaar nooit weer as ’n heilige plek gebruik word nie. Dit was net soos die profeet uit Juda destyds die Here se oordeel oor Bet-El aangekondig het toe Jerobeam tydens die feestyd by die altaar gestaan het. Daarna het Josia gevra: “Wie se grafsteen is daardie een wat ek daar sien?” Die mense van Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die profeet uit Juda, wat hierdie dinge wat u nou met die altaar gedoen het, hier kom voorspel het.” Josia het toe beveel: “Laat dié graf dan met rus en moenie die bene uithaal nie.” So het dit gebeur dat hulle die bene van die profeet uit Juda en dié van die ou profeet uit Samaria nie versteur het nie. Josia het ook die tempels vernietig wat die konings van Israel in Samaria gebou het. Hy het dit op dieselfde manier behandel as die heilige plek by Bet-El. Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan. Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.” Die paasfees is in al die jare van die konings van Israel en Juda nie só gevier nie. Dit het laas gebeur in die tyd toe die rigters in Israel regeer het. Die paasfees ter ere van die Here is in Jerusalem tot eer van die Here gevier in die agtiende jaar wat Josia regeer het. By alles wat hy reeds gedoen het, het Josia ook nog ontslae geraak van alle mense wat geeste oproep en waarsêery beoefen het, asook van alle huisgode en elke ander manier waarop afgode in Juda of in Jerusalem gedien kon word. Dit was alles bedoel om te voldoen aan die Here se eise volgens die wetboek wat Gilkija in die tempel gekry het. Daar was in die hele geskiedenis nie nog ’n koning soos Josia nie. Daar was nie een wat hom só heelhartig en met al sy krag daaraan gewy het om alles te doen wat die Here volgens die wet van Moses van hom verwag het nie. Daar was ook ná hom nie weer so ’n koning soos hy nie. Die Here het egter nie sy besluit oor Juda verander nie. Hy was nog altyd woedend oor die dinge wat Manasse gedoen het. Die Here het besluit: “Ek gaan van Juda ontslae raak soos wat Ek van Israel ontslae geraak het. Ook Jerusalem wat Ek self gekies het en die tempel waarvan Ek vroeër gesê het: ‘Dit is die plek waar Ek sal woon,’ verwerp Ek nou.” Die res van Josia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Terwyl Josia koning was, het farao Neko, die koning van Egipte, na die Eufraatrivier toe gegaan om die koning van Assirië te gaan help. Josia wou dit keer en het met sy leër teen die farao gaan veg. Hulle het mekaar by Megiddo ontmoet, maar Neko het Josia doodgemaak. Josia se lyfwagte het sy lyk op ’n strydwa gesit en hom teruggevat Jerusalem toe. Daar is hy in sy graf begrawe en die mense van die land het sy seun Joahas in sy plek koning gemaak. Joahas was 23 toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna. Die Here was nie tevrede met die dinge wat Joahas gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg. Farao Neko het Joahas gevang en in Ribla in die land Hamat opgesluit, sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie. As straf het Neko drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud van Juda geëis. Hy het toe vir Eljakim, ’n ander seun van Josia, in Jerusalem koning gemaak en sy naam na Jojakim verander. Hy het ook vir Joahas saamgevat Egipte toe, waar hy later dood is. Jojakim moes die boete aan farao Neko betaal. Om dit te kon doen moes almal in Juda belasting betaal. Elkeen moes betaal volgens hulle rykdom. Jojakim was 25 toe hy koning geword het en hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg. Gedurende Jojakim se regering het Nebukadnesar Juda aangeval. Jojakim het hom drie jaar lank aan Nebukadnesar onderwerp. Daarna het hy teen Babel gerebelleer. Toe het die Here bendes Babiloniërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete gestuur om Jojakim aan te val. Hy het hulle gestuur om Juda te vernietig, presies volgens die waarskuwings wat Hy deur die profete gestuur het. Die Here het self besluit dat Juda moes verdwyn. Dit was as gevolg van die ontsettende sondes wat Manasse gedoen het. Hy het onder meer ’n klomp mense onskuldig doodgemaak sodat die bloed vrylik in Jerusalem gevloei het. Die Here wou al dié dinge nie vergewe nie. Die res van Jojakim se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Ná Jojakim se dood het sy seun Jojagin in sy plek koning geword. Die koning van Egipte het na dié tyd nooit weer buite Egipte opgetree nie, want die koning van Babel het die hele gebied tussen die Egiptespruit en die Eufraatrivier beset wat voorheen deur Egipte beheer is. Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, ’n dogter van Elnatan uit Jerusalem. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie. Hy het sy pa se swak voorbeeld gevolg. In dié tyd het die leër van Nebukadnesar, die koning van Babel, Jerusalem aangeval en van die buitewêreld afgesny. Toe Nebukadnesar self by die stad aankom, het Jojagin oorgegee. Hy en sy ma, die koningin-moeder, en sy lyfwag, sy belangrikste amptenare en offisiere het uitgegaan en hulle is gevang. Dit was in die agtste jaar wat Nebukadnesar regeer het. Net soos die Here vroeër gesê het, het die koning van Babel Jerusalem beroof. Hy het al die skatte in die tempel en die paleis bymekaargemaak. Hy het ook die goud afgehaal van die voorwerpe wat koning Salomo jare tevore reeds vir die tempel laat maak het. Nebukadnesar het ook die mense van Jerusalem weggeneem. Hy het 10 000 mense gevang en as gevangenes weggevoer: die amptenare en beste soldate, maar ook die vakmanne wat hy kon gebruik. Net die armste mense het in die land agtergebly. Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma en sy vroue en al die belangrike mense van Jerusalem na Babel toe weggeneem. Hy het ook 7 000 soldate en 1  000 vakmanne saamgeneem, almal fiks en bruikbaar in sy leër. Hy het toe vir Mattanja, ’n oom van Jojagin, in Jerusalem koning gemaak en sy naam verander na Sedekia. Sedekia was 21 toe hy koning geword het en hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna. Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het net dieselfde dinge as Jojakim gedoen. Die Here was woedend vir Juda en Jerusalem en Hy wou hulle net voor sy oë wegvee. Sedekia het teen die koning van Babel in opstand gekom. Dit was in die negende jaar wat Sedekia regeer het. Op die tiende dag van die tiende maand het Nebukadnesar met sy hele leër by Jerusalem opgedaag en die stad omsingel. Die inwoners is van die buitewêreld afgesny. Hulle het die stad byna twee jaar lank so beleër. Teen die negende dag van die vierde maand van die elfde jaar wat Sedekia regeer het, was daar glad nie meer kos vir die mense nie. Dié nag is daar ’n gat deur die stadsmuur gebreek en die soldate het probeer vlug. Al het hulle geweet dat die Babiloniese soldate die stad omring, het hulle in die rigting van die Jordaanrivier probeer wegkom. Die Babiloniese soldate het hulle egter agtervolg en die koning op die vlakte by Jerigo ingehaal en gevang. Teen daardie tyd was sy hele leër al versprei soos hulle probeer vlug het. Sedekia is toe na die koning van Babel in Ribla geneem. Hulle het hom net daar verhoor. Hy moes kyk hoe sy seuns doodgemaak word en toe is sy oë uitgesteek. Daarna is hy met ’n ketting vasgemaak en na Babel toe weggevat. Nebusaradan, een van Nebukadnesar se offisiere en vertrouelinge, is gestuur om Jerusalem te gaan vernietig. Dit was op die sewende dag van die vyfde maand in die negentiende jaar wat Nebukadnesar regeer het. Hy het die tempel en die paleis en elke groot gebou in die stad begin afbrand. Sy soldate het Jerusalem se hele stadsmuur van ’n kant af omgegooi en afgebreek. Die res van die mense in Jerusalem, almal wat nog in die stad oor was en dié wat voorheen na die Babiloniërs oorgeloop het, is deur Nebusaradan na Babel toe weggevoer. Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk. Die soldate het al die brons in die tempel bymekaargemaak. Hulle het die bronspilare, die bronswaterkarretjies en groot bronswaterbak opgebreek en die metaal Babel toe gevat. Dieselfde het gebeur met die kleiner bronsvoorwerpe, soos die potte, grawe, skêre, panne en ander gereedskap wat in die tempel gebruik is. Hulle het ook die vuurbakke en komme buitgemaak wat van suiwer goud en silwer gemaak is. Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie. Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak. Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel. In die stad het hy ook die offisier gevang wat in bevel van die soldate was, saam met vyf vriende van die koning en die hoof van die leër se sekretaris wat soldate moes oproep, asook ’n verdere 60 burgers. Hy het hulle almal as gevangenes na die koning van Babel in Ribla geneem wat hulle net daar laat doodmaak het. Só is die hele Juda in ballingskap uit hulle land uit weggevoer. Nebukadnesar het Gedalja aangestel as goewerneur oor die mense wat hy toegelaat het om in Juda agter te bly. Toe die offisiere en soldate hoor dat Gedalja aangestel is, het hulle na hom toe gegaan waar hy in die dorp Mispa was. Die betrokke leiers was Ismael, Joganan, Seraja en Jaäsanja. Gedalja het hulle verseker dat hulle veilig was. Hy het gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare uit Babel nie. Bly in die land en wees gehoorsaam aan die koning van Babel. Dan sal alles goed gaan.” Ismael, wat ’n lid van die koninklike familie van Juda was, het in die sewende maand Mispa toe gegaan. Hy het tien manne by hom gehad. Hulle het Gedalja en die klompie Judese en Babiloniese amptenare by hom vermoor. Daarna het al wat Judeër is, belangrik en onbelangrik, asook die leëroffisiere Egipte toe gevlug. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs met hulle sou doen. In koning Jojagin se 37ste jaar as gevangene in Babel het Ewil-Merodak koning van Babel geword. Op die 27ste dag van die twaalfde maand het hy Jojagin begenadig. Hy het hom uit die tronk vrygelaat, vriendelik met hom gesels en hom beter behandel as die ander gevange konings. Hy het vir Jojagin nuwe klere in plaas van sy tronkklere gegee en hom vir die res van sy lewe aan die koninklike tafel laat eet. Hy het ook permanent ’n toelaag vir sy daaglikse behoeftes van die koning van Babel ontvang. Adam, Set, Enos, Kenan, Mahalalel, Jered, Henog, Metusalag, Lameg, Noag. Noag se seuns was Sem, Gam en Jafet. Die nageslag van Jafet: Gomer, Magog, Madai, Jawan, Tubal, Mesek en Tiras. Die nageslag van Gomer: Askenas, Rifat en Togarma. Die nageslag van Jawan: Elisa, Tarsis, Kittim en die Rodaners. Die nageslag van Gam: Kus, Misraim, Put en Kanaän. Die nageslag van Kus: Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Die nageslag van Rama: Skeba en Dedan. Kus was ook Nimrod se pa. Hy was wêreldwyd bekend as ’n heldhaftige vegter. Uit Misraim het gekom die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs, Naftugiete, Patrosane en die Kaslugiete, uit wie die Filistyne kom, en die Kaftoriete. Uit Kanaän het gekom Sidon, sy oudste seun, en verder Het, die Jebusiete, Amoriete, Girgasiete, Hewiete, Erekiete, Siniete, Arwadters, Semariërs en die mense van Hamat. Die nageslag van Sem: Elam, Assirië, Arpaksad, Lud, Aram, Us, Gul, Geter en Mesek. Uit Arpaksad het Selag gekom, en uit Selag Heber. Vir Heber is twee seuns gebore. Die een was Peleg, want die land is in sy tyd verdeel. Sy broer was Joktan. Uit Joktan het Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag, Hadoram, Usal, Dikla, Obal, Abimael, Skeba, Ofir, Gawila en Jobab gekom. Hulle was almal seuns van Joktan. Sem, Arpaksad, Selag, Heber, Peleg, Reü, Serug, Nahor, Tera en Abram, oftewel Abraham. Abraham se seuns was Isak en Ismael. Ismael se nakomelinge was Nebajot, die oudste, en ook Kedar, Adbeël, Mibsam, Misma, Duma, Massa, Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Hulle was Ismael se seuns. Abraham se byvrou, Ketura, was Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag se ma. Joksan se seuns was Skeba en Dedan. Midian se seuns was Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Hulle was almal uit Ketura se nageslag. Abraham se ander seun was Isak. Isak se seuns was Esau en Israel. Esau se seuns was Elifas, Reüel, Jeüs, Jalam en Korag. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam, Kenas, Timna en Amalek. Reüel se seuns was Nagat, Serag, Samma en Missa. Seïr se seuns was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan. Lotan se seuns was Gori en Hemam. Timna was Lotan se suster. Sobal se seuns was Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam. Sibon se seuns was Aja en Ana. Ana se seun was Disan. Disan se seuns was Gemdan, Esban, Jitran en Keran. Eser se seuns was Bilhan, Saäwan en Akan. Dison se seuns was Us en Aran. Die volgende konings het in Edom regeer voordat die Israeliete ’n koning gehad het: Bela, seun van Beor. Sy stad se naam was Dinhaba. Na Bela se dood het Jobab, seun van Serag, uit Bosra, hom opgevolg. Na Jobab se dood het Gusam, uit die land van die Temaniete, hom opgevolg. Na Gusam se dood het Hadad, seun van Bedad, hom opgevolg. Hy het die Midianiete in die gebied van Moab verslaan. Sy stad se naam was Awit. Na Hadad se dood het Samla van Masreka hom opgevolg. Na Samla se dood het Saul van Regobot-aan-die-Rivier hom opgevolg. Na Saul se dood het Baäl-Ganan, seun van Akbor, hom opgevolg. Na Baäl-Ganan se dood het Hadar hom opgevolg. Sy stad was Paü en sy vrou was Mehetabel, dogter van Matred en ’n kleindogter van Me-Sahab. Na Hadar se dood het daar stamhoofde in Edom regeer: Timna, Alwa, Jetet, Oholibama, Ela, Pinon, Kenas, Teman, Mibsar, Magdiël en Iram. Hulle was die stamhoofde van Edom. Israel se seuns was Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Sebulon, Dan, Josef, Benjamin, Naftali, Gad en Aser. Juda se seuns was Er, Onan en Sela. Hulle ma was Bat-Sua, ’n Kanaänitiese vrou. Juda se oudste seun, Er, was ’n slegte man en die Here het hom doodgemaak. Juda het ook twee seuns, Peres en Serag, by sy skoondogter Tamar gehad. Hy het dus altesaam vyf seuns gehad. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Serag se seuns was Simri, Etan, Heman, Kalkol en Darda, vyf altesaam. Karmi se seun was Akan. Hy het goed gevat wat die Here s’n was en so ’n ramp oor Israel laat kom. Etan se seun was Asarja. Gesron se seuns was Jeragmeël, Ram en Kaleb. Ram was Amminadab se pa en Amminadab die pa van Nagson, ’n leier van Juda. Nagson was Salmon se pa en Salmon was Boas se pa. Boas was Obed se pa en Obed was Isai se pa. Isai se sewe seuns was, van die oudste tot die jongste: Eliab, Abinadab, Samma, Netanel, Raddai, Osem en Dawid. Hulle susters was Seruja en Abigal. Seruja se drie seuns was Abisai, Joab en Asael. Abigal was met Jeter, ’n Ismaeliet, getroud en hulle seun was Amasa. Gesron se seun Kaleb het by sy eerste vrou, Asuba, ’n dogter, Jeriot, en drie seuns, Jeser, Sobab en Ardon, gehad. Na Asuba se dood is Kaleb met Efrata getroud en hulle seun was Gur. Gur was Uri se pa en Uri was Besaleël se pa. Toe Gesron 60 was, is hy met Gilead se suster, ’n dogter van Makir, getroud. Hulle het ’n seun met die naam Segub gehad. Segub was Jaïr se pa. Jaïr het 23 dorpe in Gilead besit. Later het Gesur en Aram die tentdorpe van Jaïr verower en ook vir Kenat met sy buitedorpe. Dit was 60 dorpe in totaal, wat voorheen aan die seuns van Makir, Gilead se pa, behoort het. Na Gesron se dood het Kaleb by sy pa se vrou Efrata geslaap en hulle het ’n seun, Asgur, gehad. Hy was Tekoa se pa. Jeragmeël, Gesron se oudste seun, was die pa van Ram, sy oudste, asook Buna, Oren, Osem en Agija. Jeragmeël het nog ’n vrou gehad. Sy was Atara en sy was die ma van Onam. Ram, die oudste seun van Jeragmeël, se seuns was Maäs, Jamin en Eker. Onam se seuns was Sammai en Jada, en Sammai se seuns was Nadab en Abisur. Abisur se vrou was Abihajil en sy was Agban en Molid se ma. Nadab se seuns was Seled en Appajim, maar Seled is sonder kinders dood. Appajim het ’n seun Jisi gehad. Jisi se seun was Sesan, en Sesan was Aglai se pa. Jada se seuns was Agi, Sammai, Jeter en Jonatan. Jeter het sonder kinders gesterf. Jonatan se seuns was Pelet en Sasa. Hulle was almal nakomelinge van Jeragmeël. Sesan het nie seuns gehad nie, net dogters. Hy het ’n Egiptiese slaaf met die naam Jarga gehad. Hy het toe een van sy dogters met sy slaaf Jarga laat trou. Sy en Jarga het ’n seun, Attai, gehad. Attai was Natan se pa en Natan was Sabad se pa, Sabad was Eflal se pa, Eflal was Obed se pa, Obed was Jehu se pa en Jehu was Asarja se pa. Asarja was Geles se pa, Geles was Elasa se pa, Elasa was Sismai se pa, Sismai was Sallum se pa, Sallum was Jekamja se pa en Jekamja was Elisama se pa. Kaleb, Jeragmeël se broer, se nageslag was soos volg: Mesa, sy oudste seun, was Sif se pa, en Maresa, sy tweede seun was Hebron se pa. Hebron se seuns was Korag, Tappuag, Rekem en Sema. Sema was Ragam se pa en Ragam was Jorkoam se pa. Rekem was Sammai se pa. Sammai het ’n seun Maon gehad en Maon was Bet-Sur se pa. Kaleb se byvrou Efa het vir Garan, Mosa en Gases gehad. Garan was Gases se pa. Jodai se seuns was Regem, Jotam, Gesan, Pelet, Efa en Saäf. Nog ’n byvrou van Kaleb, Maäka, het vir Seber en Tirgana gehad. Sy was ook die ma van Saäf, Madmanna se pa, en van Sewa, wat Makbena en Giba se pa was. Kaleb het ook ’n dogter met die naam Aksa gehad. Hulle was almal Kaleb se nakomelinge. Gur, die oudste seun van Gesron en Efrata, se drie seuns was Sobal (Kirjat-Jearim se pa), Salma (Betlehem se pa) en Garef (Bet-Gader se pa). Sobal (Kirjat-Jearim se pa) se nageslag was: Reaja, die helfte van Managat se mense, en die families van Kirjat-Jearim: die Jitreërs, Puteërs, Sumaners en Misraners. Uit hulle het ook die mense van Sora en Estaol voortgekom. Salma se nageslag was: Betlehem, die Netofaners, Atrot-Bet-Joab, die ander helfte van Managat se mense, die Soreërs en die skrywersfamilies wat in Jabes woon, naamlik die Tirateërs, Simeateërs en Sukateërs. Hulle is die Keniete wat van Gammat afstam. Hy was die vader van die Rekabfamilie. Die volgende seuns van Dawid is gebore toe hy nog in Hebron gewoon het: die oudste was Amnon, wie se ma Aginoam van Jisreël was; die tweede was Daniël, wie se ma Abigajil van Karmel was; die derde was Absalom, wie se ma Maäka, ’n dogter van koning Talmai van Gesur was; die vierde was Adonia, wie se ma Gaggit was; die vyfde was Sefatja, wie se ma Abital was; die sesde was Jitream, wie se ma Egla was. Dié ses is in Hebron gebore, terwyl Dawid vir sewe jaar en ses maande daar koning was. Dawid is toe na Jerusalem, waar hy 33 jaar lank koning was. Die volgende seuns is in Jerusalem gebore: Batseba se vier seuns Sima, Sobab, Natan en Salomo, asook ’n verdere nege seuns: Jibgar, Elisua, Elpelet, Noga, Nefeg, Jafia, Elisama, Eljada en Elifelet. Dit was al Dawid se seuns behalwe dié seuns wat hy by sy byvroue gehad het. Dawid het ook ’n dogter met die naam Tamar gehad. Salomo se nageslag was Rehabeam, sy seun, en dan in volgorde Abia, Asa, Josafat, Joram, Ahasia, Joas, Amasia, Asarja, Jotam, Agas, Hiskia, Manasse, Amon en Josia. Josia se seuns was: Joganan, die oudste, Jojakim tweede, Sedekia derde en Sallum vierde. Jojakim se seuns was Jojagin en Sedekia. Jojagin, wat as gevangene na Babel weggevoer is, se seuns was Sealtiël, Malkiram, Pedaja, Senassar, Jekamja, Hosama en Nedabja. Pedaja se seuns was Serubbabel en Simi. Serubbabel se seuns was Mesullam en Gananja en hulle het ’n suster Selomit gehad, en dan verder die vyf seuns Gasuba, Ohel, Berekja, Gasadja en Jusab-Gesed. Gananja se nageslag was Pelatja, sy seun Jesaja, sy seun Refaja, sy seun Arnan, sy seun Obadja en sy seun Sekanja. Sekanja se ses seuns was Semaja, Gattus, Jigal, Bariag, Nearja en Safat. Nearja het drie seuns gehad: Eljoënai, Hiskia en Asrikam. Eljoënai se sewe seuns was Hodauja, Eljasib, Pelaja, Akkub, Joganan, Delaja en Anani. Juda se seuns was: Peres, Gesron, Karmi, Gur en Sobal. Sobal se seun Reaja was Jagat se pa, en Jagat was Agumai en Lahad se pa. Dit is die mense wat in Sora gewoon het. Etam se nageslag was Jisreël, Jisma en Jidbas, Hasselelponi (sy dogter), Penuel (die grondlegger van Gedor) en Eser (die grondlegger van Gusa). Hulle was die nageslag van Gur (Efrata se oudste seun) en vader van Betlehem. Asgur (die grondlegger van Tekoa), het twee vroue gehad, Gela en Naära. By Naära het hy vier seuns gehad: Agussam, Gefer, Temni en Agastari. Hulle was Naära s’n. Gela se seuns was Seret, Sogar en Etnan. Kos was die voorvader van Anub en Sobeba en van die geslagte van Agargel, Harum se seun. Jabes was belangriker as sy broers. Sy ma het hom Jabes genoem omdat sy geboorte so pynlik was. Jabes het in ’n gebed met Israel se God gepraat: “Seën my tog, maak my grondgebied groter, hou u hand oor my en hou onheil van my af weg, sodat geen hartseer my tref nie.” God het vir hom gegee wat hy gevra het. Kelub, die broer van Suga, was Megir se pa. Megir was Eston se pa. Eston was Bet-Rafa, Paseag en Teginna se pa en Teginna was Ir-Nagas se pa. Hulle was die mense van Reka. Kenas se seuns was Otniël en Seraja, en Otniël se seuns was Gatat en Meonotai, wat Ofra se pa was. Seraja was Joab se pa, die grondlegger van Geharasjim, Vakmansdal, want hulle was vakmanne. Kaleb, die seun van Jefunne, se seuns was Iru, Ela en Naäm. Ela se seun was Kenas. Jehallelel se seuns was Sif, Sifa, Tireja en Asarel. Esra se seuns was Jeter, Mered, Efer en Jalon. Mered is met ’n Egiptiese vrou getroud en hulle kinders was Mirjam, Sammai en Jisbag, Estemoa se pa. Mered is ook met ’n Judese vrou getroud en hulle kinders was Jered (die grondlegger van Gedor), Geber (die grondlegger van Soko) en Jekutiël (die grondlegger van Sanoag). Mered se Egiptiese vrou, Bitja, was ’n dogter van die farao. Hodija se vrou was ’n suster van Nagam. Een van haar seuns was die pa van Keïla van Garmi en ’n ander seun was Estemoa van Maäka se pa. Simon se seuns was Amnon, Rinna, Ben-Ganan, Tilon. Die nageslag van Jisi was Soget en Ben-Soget. Sela was ’n seun van Juda. Sela se nageslag was Er (die grondlegger van Leka), Lada (die grondlegger van Maresa), die families van linnewerkers van Bet-Asbea, Jokim en die mense van Koseba, asook Joas en Saraf wat in Moab regeer het, en Jasubi-Legem. Hierdie is baie ou oorlewerings. Hulle was pottebakkers en het in Netaïm en Gedera gebly, waar hulle in die koning se diens was. Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Jarib, Serag en Saul. Saul se afstammelinge was Sallum, sy seun Mibsam en sy seun Misma. Misma se afstammelinge was Gammuel, sy seun Sakkur en sy seun Simi. Simi het sestien seuns en ses dogters gehad, maar sy broers het nie baie kinders gehad nie. Daarom was die stam van Simeon nooit so groot soos die stam van Juda nie. Hulle het in Berseba, Molada, Gasar-Sual, Baäla, Esem, Eltolad, Betuel, Gorma, Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim, Bet-Biri en Saärajim gewoon. Dit was hulle stede totdat Dawid koning geword het. Hulle het ook in die vyf stede Etam, Ajin, Rimmon, Token en Asan en in die dorpies rondom dié stede tot so ver as Baäl gewoon. Dit is waar hulle gewoon het en hulle name is in die geslagsregister opgeneem. Mesobab, Jamlek, Josa die seun van Amasia, Joël, Jehu seun van Josibja, seun van Seraja, seun van Asiël, Eljoënai, Jaäkoba, Jesogaja, Asaja, Adiël, Jesimiël, Benaja, Sisa seun van Sifi, seun van Allon, seun van Jedaja, seun van Simri, seun van Semaja - hulle name is in die lys opgeneem. Hulle was leiers en hulle families het sterk gegroei. Op soek na weiveld vir hulle kleinvee het hulle ooswaarts in die vallei tot by Gedor getrek. Hulle het goeie, geil weiveld gekry. Die wêreld daar was na alle kante toe oop en vry en dit was ’n rustige en stil omgewing. Voorheen het ander mense daar gewoon. In koning Hiskia van Juda se tyd het die afstammelinge van Simeon wie se name op die lys staan, in die gebied ingetrek. Hulle het die gebied heeltemal ingeneem. Hulle het die afstammelinge van Gam, asook die Meüniete wat daar te vind was, verslaan. Die Simeoniete het die vorige inwoners heeltemal uitgewis en die land in besit geneem, want hulle wou die weiveld vir hulle kleinvee hê. Verder het ’n groep van 500 Simeoniete na Seïrberg toe getrek. Hulle leiers was Pelatja, Nearja, Refaja en Ussiël, almal seuns van Jisi. Hulle het die mense van Amalek wat oor was, verslaan en hulle woon nou nog daar. Ruben was Israel se oudste seun. Nadat hy egter by een van sy pa se vroue geslaap het, is die status en voorregte wat hy as oudste seun gehad het, oorgedra op die seuns van Josef, Israel se seun. Hy is nie meer as die oudste seun gereken nie. Die stam van Juda het wel die sterkste een van al die stamme geword en ’n leier vir die volk opgelewer, maar Josef het steeds die rang van oudste seun gehad. Die seuns van Ruben, Israel se oudste seun, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Joël se afstammelinge was in volgorde: Semaja, Gog, Simi, Miga, Reaja, Baäl en Beëra. Beëra was die leier van die Rubeniete toe hulle deur koning Tiglat-Pileser van Assirië gevang en weggevoer is. Beëra se familie is volgens hulle afkoms per familiegroep in die register opgeneem. Jeïel was die leier en naas hom Sagaria en Bela seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Die Rubenstam het in ’n gebied gewoon wat van Aroër af tot by Nebo en Baäl-Meon gestrek het. In Gilead het hulle vee só baie geword dat hulle al verder oos getrek het tot teen die woestyn wat tot aan die oewers van die Eufraatrivier strek. In Saul se tyd het hulle die Hagareërs aangeval en verslaan. Hulle het toe in die dorpies gaan woon wat hulle oorwin het. Dit was die hele oostelike deel van Gilead. Die afstammelinge van Gad het langs die Rubeniete in Basan gewoon. Hulle het tot so ver oos as Salka gewoon. Joël was die leier in Basan en Safam was die tweedebelangrikste leier. Verder was daar ook nog Janai en Safat. Hulle stamgenote was volgens hulle families: Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam. Hulle was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was die leier van hulle familiegroepe. Hulle het in Gilead en in Basan met sy dorpies gewoon en ook die weivelde van Saron gebruik, so ver as wat dit gestrek het. Dié registers is almal opgestel in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam II van Israel. Die Rubeniete, Gadiete en die halwe Manassestam het 44 760 weerbare manne gehad. Hulle was goed opgeleide soldate wat met skild en swaard en pyl en boog gewapen was. Toe hulle die Hagareërs en vir Jetur, Nafis en Nodab aangeval het, het hulle tot God gebid en hulp ontvang. Hy het hulle gehelp omdat hulle in Hom geglo het en hulle het die Hagareërs en almal wat aan die Hagareërs se kant was, oorwin. Hulle het ook baie vee gebuit: 50 000 kamele, 250 000 stuks kleinvee en 2 000 donkies. Daarby het hulle ook nog 100  000 mense gevange geneem en baie mense is in die gevegte dood, want God het dié oorlog gevoer. Hulle het toe in die verowerde gebied gewoon totdat die ballingskap aangebreek het. Die halwe Manassestam het in ’n gebied gewoon wat van Basan af tot by Baäl-Hermon, Senir en Hermonberg gestrek het. Hulle was baie. Hulle familiehoofde was Efer, Jisi, Eliël, Asriël, Jeremia, Hodauja en Jagdiël. Hulle was almal goeie vegters, met ’n goeie naam en leiers van hulle families. Hierdie stamme was nie gehoorsaam aan die God van hulle voorouers nie. Hulle het die gode begin dien van die volke wat God uitgeroei het om vir hulle daar plek te maak. Dit is om dié rede dat die God van Israel vir koning Pul van Assirië (dit is Tiglat-Pileser) gebruik het om die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam aan te val en hulle as krygsgevangenes weg te voer. Die Assiriërs het hulle na Galag, Gabor, Hara en die Gosanrivier weggeneem. Hulle is nou nog daar. Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari. Kehat se seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Amram se kinders was Aäron, Moses en Mirjam. Aäron se seuns was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Die familielyn van Eleasar loop dan in volgorde oor Pinehas, Abisua, Bukki, Ussi, Seragja, Merajot, Amarja, Agitub, Sadok, Agimaäs, Asarja en Joganan tot by Asarja, wat priester was in die tempel wat Salomo in Jerusalem gebou het. Van Asarja af loop die geslag oor Amarja, Agitub, Sadok, Sallum, Gilkija, Asarja en Seraja tot by Josadak. Josadak is saam toe die Here Juda en Jerusalem deur Nebukadnesar laat wegvoer het. Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari. Gerson se seuns was Libni en Simi. Kehat se seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Merari se seuns was Magli en Musi. Hier volg die Levigeslagte volgens hulle familiegroepe. Gerson se afstammelinge was Libni, Jagat, Simma, Joag, Iddo, Serag en Jeatrai. Kehat se afstammelinge was Amminadab, Korag, Assir, Elkana, Abiasaf, Assir, Tagat, Uriël, Ussia en Saul. Elkana se afstammelinge was Amasai, Agimot, Elkana, Suf, Nagat, Eliab, Jerogam en Elkana. Samuel se seuns was Joël, die oudste, en Abia, die tweede. Merari se afstammelinge was Magli, Libni, Simi, Ussa, Sima, Gaggija en Asaja. Dawid het die volgende mense aangestel om die sang in die huis van die Here te lei sodra die verbondsark daarin neergesit is. Voordat Salomo die tempel in Jerusalem gebou het, moes hulle die sang lei voor die heilige plek, die tent waar die Here sy volk ontmoet het. Hulle het volgens ’n vaste rooster beurte gemaak om die sang te lei. Die tempelmusikante en hulle seuns was: Heman die tempelsanger (uit die Kehatgroep) se familielyn is teruggevoer deur Joël, sy pa, na Samuel, Elkana, Jerogam, Eliël, Togu, Suf, Elkana, Magat, Amasai, Elkana, Joël, Asarja, Sefanja, Tagat, Assir, Abiasaf, Korag, Jishar en Kehat tot by Levi, Israel se seun. Heman se eerste assistent was Asaf. Hy het regs van Heman gestaan. Asaf se familielyn tot by Levi het só gelyk: oor Berekja, Sima, Migael, Maäseja, Malkija, Etni, Serag, Adaja, Etan, Simma, Simi, Jagat tot by Gerson, Levi se seun. Heman se tweede assistent was Etan (uit die Merarigroep). Hy het links van Heman-hulle gestaan. Etan se familielyn het teruggaan oor Kusaja, Abdi, Malluk, Gasabja, Amasia, Gilkija, Amsi, Bani, Semer, Magli en Musi tot by Merari, Levi se seun. Die tempelmusikante se familielede, wat ook Leviete was, is aangestel om verskeie ander take by die heilige plek, die huis van God, te verrig. Slegs Aäron en sy seuns het egter as priesters opgetree. Net hulle kon diere by die altaar offer waar diere verbrand is en by die altaar waar wierook gebrand is. Hulle het ook die take verrig wat met die Allerheiligste deel van die tempel te doen gehad het. Hulle het die verhouding tussen Israel en God herstel volgens al die reëls wat Moses, God se werker, gemaak het. Die nageslag van Aäron was Eleasar, Pinehas, Abisua, Bukki, Ussi, Seragja, Merajot, Amarja, Agitub, Sadok en Agimaäs. Hier is ’n verslag van die dorpe en gebiede wat volgens die lot aangewys is vir die nageslag van Aäron, uit die Kehatgroep. Hulle het Hebron in Juda gekry, met die weivelde rondom die dorp, maar die landerye en oop veld in die omgewing is aan Kaleb, Jefunne se seun, gegee. Die volgende dorpe met hulle weivelde is aan Aäron se nageslag gegee: die asielstad Hebron, wat reeds genoem is, en Libna, Jattir, Estemoa, Golon, Debir, Asan, Jutta en Bet-Semes, asook Gibeon, Geba, Alemet en Anatot, met hulle weivelde in die Benjamingebied. Hulle het altesaam dertien stede vir Aäron se nageslag ontvang. Vir die res van Kehat se nageslag het hulle met die lot tien stede in die gebied van die halwe Manassestam aangewys. Vir Gerson se nageslag het hulle in die stamgebiede van Issaskar, Aser en Naftali en in die stamgebied van Manasse, in Basan, dertien stede aangewys. Vir Merari se nageslag het hulle met die lot twaalf stede in die stamgebiede van Ruben, Gad en Sebulon aangewys. Die Israeliete het die stede met hulle weivelde vir die Leviete gegee. Die stede in die stamgebiede van Juda, Simeon en Benjamin, wat reeds genoem is, is ook met die lot aangewys. Vir Kehat se nageslag is stede in die stamgebied van Efraim aangewys. Hulle het die volgende stede saam met hulle weivelde gekry: Sigem, ’n asielstad in die Efraimberge, asook Geser, Jokmeam, Bet-Goron, Ajalon en Gat-Rimmon. Die res van Kehat se nageslag het Aner en Jibleam, met hulle weivelde, gekry. Dit was in die stamgebied van die halwe Manassestam. Vir Gerson se nageslag is stede in vier stamgebiede aangewys: in die stamgebied van die halwe Manassestam, Golan in Basan en Astarot, albei met hulle weivelde; in die stamgebied van Issaskar, Kedes, Daberat, Ramot en En-Gannim met hulle weivelde; in die stamgebied van Aser, Misal, Abdon, Gukok en Regob met hulle weivelde; in die stamgebied van Naftali, Kedes in Galilea, Gammon en Kirjatajim met hulle weivelde. Die res van Merari se nageslag het op verskillende plekke stede gekry: in die stamgebied van Sebulon, Rimmon en Tabor met hulle weivelde; oorkant Jerigo, oos van die Jordaan, in die stamgebied van Ruben, Beser in die woestyn en Jahas, Kedemot en Mefaät met hulle weivelde; in die stamgebied van Gad, Ramot in Gilead, Maganajim, Gesbon en Jaser met hulle weivelde. Issaskar se vier seuns was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Tola se seuns was Ussi, Refaja, Jeriël, Jagmai, Jibsam en Samuel. Elkeen van hulle was ’n familiehoof van afkoms en hulle was dapper soldate. Hulle was in Dawid se tyd 22 600 mense sterk. Ussi se seun was Seragja en Seragja se seuns was Migael, Obadja, Joël en Jissija. Al vyf van hulle was familiehoofde. Hulle was verantwoordelik vir gevegskompanies met ’n totaal van 36 000 soldate, want hulle het baie vroue en kinders gehad. Hulle stamgenote in die res van die Issaskarstam was 87 000 soldate, wat almal geregistreer was. Benjamin het drie seuns gehad: Bela, Beker en Jediael. Bela se vyf seuns was Esbon, Ussi, Ussiël, Jerimot en Iri. Elkeen was ’n familiehoof en hulle was dapper soldate. Uit hulle nageslag is 22 034 soldate geregistreer. Beker se seuns was Semira, Joas, Eliëser, Eljoënai, Omri, Jeremot, Abia, Anatot en Alemet. Elkeen was ’n familiehoof en hulle was dapper soldate. Uit hulle nageslag is 20 200 soldate geregistreer. Jediael se seun was Bilhan en sy seuns Jeüs, Benjamin, Ehud, Kenaäna, Setan, Tarsis en Agisagar. Elkeen was ’n familiehoof en hulle was dapper soldate. Uit hulle nageslag was daar 17 200 wat vir militêre diens opgeroep kon word. Suppim en Guppim was Ir se seuns en Gussim was Ager s’n. Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Hulle was afstammelinge van Bilha. Manasse se kinders by sy Aramese houvrou was Asriël en Makir, Gilead se pa. Makir is met ’n vrou uit Guppim en Suppim getroud en sy suster was Maäka. Een van sy afstammelinge was Selofgad, maar hy het net dogters gehad. Makir se vrou Maäka was Peres se ma. Peres se broer was Seres. Seres se seuns was Ulam en Rekem. Ulam se seun was Bedan. Dit was die nageslag van Gilead, die seun van Makir, die seun van Manasse. Gilead se suster Moleket was Ishod, Abiëser en Magla se ma. Semida se seuns was Agjan, Sekem, Likgi en Aniam. Efraim se seun was Sutelag, sy seun Bered, sy seun Tagat, sy seun Elada, sy seun Tagat, sy seun Sabad en sy seun Sutelag. Hy het nog twee seuns, Eser en Elad, gehad. Hulle is egter doodgemaak toe hulle van die oorspronklike inwoners van Gat se vee probeer steel het. Efraim het lank oor die twee getreur, totdat sy broers hom kom troos het. Daarna het hy en sy vrou weer ’n seun gehad. Hy het hom Beria genoem, omdat hy gebore is in ’n tyd toe teëspoed hulle huis getref het. Efraim se dogter, Seëra, het die dorpe Bet-Goron-Onder, Bet-Goron-Bo en Ussen-Seëra gebou. Beria se seuns was Refag en Resef. Resef se seun was Telag en sy seun Tagan. Sy seun was Ladan, sy seun Ammihud, sy seun Elisama, sy seun Nun en sy seun Josua. Efraim se nageslag het ’n gebied bewoon wat Bet-El in die suide, Naära in die ooste, Geser in die weste, Sigem in die noorde, tot by Aja, elkeen met hulle dorpies, ingesluit het. Manasse se nageslag het Bet-San, Taänak, Megiddo en Dor, elkeen met sy dorpies, besit. Dit is plekke waar Josef, die seun van Israel, se nageslag gewoon het. Aser se seuns was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria. Hulle suster was Serag. Beria se seuns was Geber en Malkiël, wat Birsajit se pa was. Geber was Jaflet, Semer, Gotam en hulle suster, Sua, se pa. Jaflet se seuns was Pasak, Bimhal en Aswat. Semer se seuns was Agi, Roga, Gubba en Aram. Gotam, sy broer, se seuns was Sofag, Jimna, Seles en Amal. Sofag se seuns was Suag, Garnefer, Sual, Beri, Jimra, Beser, Hod, Samma, Silsa, Jitran en Beëra. Jitran se seuns was Jefunne, Pispa en Ara. Ulla se seuns was Arag, Ganniël en Risja. Elkeen van die afstammelinge van Aser was familiehoofde. Hulle was almal leiers en dapper soldate. Uit hulle nageslag is 26 000 soldate geregistreer. Benjamin se seuns was in volgorde: Bela, sy oudste, en na hom Asbel, Agrag, Noga en Rafa. Bela se seuns was Addar, Gera, Abihud, Abisua, Naäman, Agoag, Gera, Sefufan en Guram. Hier is ’n lys van Egud se seuns. Hulle was die familiehoofde van die mense in Geba, wat na Managat toe weggeneem is. Hulle was Naäman, Agija en Gera (hy het hulle weggeneem), en hy was Ussa en Agigud se pa. Nadat Sagarajim van sy vroue Gusim en Baära geskei is, het hy in Moab ’n paar kinders gehad. By Godes, sy nuwe vrou, het hy vir Jobab, Sibja, Mesa, Malkam, Jeüs, Sakeja en Mirma gehad. Hulle was almal Sagarajim se seuns en hulle het familiehoofde geword. Sagarajim en Gusim het vroeër reeds vir Abitub en Elpaäl gehad. Elpaäl se seuns was Eber, Misam en Semed (wat Ono en Lod met hulle omliggende dorpies gebou het). Beria en Sema was familiehoofde van die inwoners van Ajalon. Dit was hulle wat die mense van Gat op die vlug gejaag het. Agjo, Sasak, Jeremot, Sebadja, Arad, Eder, Migael, Jispa en Joga was Beria se seuns. Sebadja, Mesullam, Giski, Geber, Jismerai, Jislia en Jobab was Elpaäl se seuns. Jakim, Sikri, Sabdi, Eliënai, Silletai, Eliël, Adaja, Beraja en Simrat was Simi se seuns. Jispan, Eber, Eliël, Abdon, Sikri, Ganan, Gananja, Elam, Antotija, Jifdeja en Penuel was Sasak se seuns. Samserai, Segarja, Atalia, Jaäresja, Elia en Sikri was Jerogam se seuns. Hulle was almal as familiehoofde volgens hulle afkoms geregistreer. Hulle was leiers en het in Jerusalem gewoon. Jeïel, die stigter van Gibeon, het in Gibeon gewoon. Sy vrou was Maäka. Sy oudste seun was Abdon, en die ander was Sur, Kis, Baäl, Nadab, Gedor, Agjo en Seker. Miklot was Sima se pa. Hulle het naby hulle stamgenote in Jerusalem gewoon. Ner was Kis se pa, Kis was Saul se pa en Saul was Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl se pa. Jonatan was Meribbaäl se pa, Meribbaäl was Miga se pa en Miga was Piton, Melek, Tagrea en Agas se pa. Agas was Jehoadda se pa en Jehoadda was Alemet, Asmawet en Simri se pa. Simri was Mosa se pa en Mosa was Bina se pa, Bina was Rafa se pa, Rafa was Elasa se pa, en Elasa was Asel se pa. Asel het ses seuns gehad. Hulle was Asrikam, die oudste, en Bokeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Hulle was Asel se seuns. Asel se broer Esek se seuns was Ulam, die oudste, en na hom Jeüs en Elifelet. Ulam se seuns was goeie soldate, spesialisboogskutters. Hulle het altesaam 150 kinders en kleinkinders gehad. Hulle was almal Benjamin se nageslag. Die hele Israel is geregistreer. Hulle name is in Die boek van die konings van Israel opgeskryf. Die mense van Juda is na Babel toe weggevoer omdat hulle ongelowig was. Gewone Israeliete was die eerste inwoners wat ná die ballingskap weer in hulle stede op hulle eie grond gaan bly het. Saam met hulle het van die priesters, Leviete en tempelbediendes gekom. Die mense wat in Jerusalem gaan bly het, was Judeërs, Benjaminiete, Efraimiete en Manassers. Die Judeërs was: Utai, seun van Ammihud, seun van Omri, seun van Imri, seun van Bani; hy was ’n seun van Peres, die seun van Juda. Uit die mense van Silo was daar Asaja, die oudste seun, en sy seuns. Uit Serag se afstammelinge was daar Jeüel en sy stamgenote. Hulle was altesaam 690. Die Benjaminiete was: Sallu, seun van Mesullam, seun van Hodauja, seun van Senua, en Jibneja seun van Jerogam, Ela seun van Ussi, seun van Mikri, en Mesullam, seun van Sefatja, seun van Reüel, seun van Jibnija. Saam met die res van hulle uitgebreide familie was hulle 956. Al hierdie manne was familiehoofde in hulle familie. Van die priesters was daar Jedaja, Jojarib, Jakin en Asarja, seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, die hoof van die tempel. Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pasgur, seun van Malkija; Masai seun van Adiël, seun van Jagsera, seun van Mesullam, seun van Mesillemot, seun van Immer. Hulle stamgenote, hoofde van hulle families, was 1 760. Hulle was bekwame mense wat in die tempel gewerk het. Van die Leviete was daar Semaja seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja (uit die Merarigeslag); Bakbakkar, Geres, Galal, Mattanja seun van Miga, seun van Sikri, seun van Asaf; Abda seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedutun; Berekja seun van Asa, seun van Elkana, wat in nedersettings van die Netofaners gewoon het. Die poortwagte was Sallum, Akkub, Talmon, Agiman en hulle familie. Sallum was die hoof en is nou nog die poortwag by die koningspoort aan die oostekant. Die familie was die poortwagte by die Leviete se kampe. Sallum was die seun van Kore, seun van Abiasaf, seun van Korag. Die mense uit die Koragietefamilie was die drumpelwagte by die tentheiligdom. Dit is dieselfde werk wat hulle voorouers in die woestyn by die ingang tot die kamp van die volk van die Here gedoen het. Vroeër was Pinehas, Eleasar se seun, hulle hoof en die Here was by hom. Sagaria, Meselemja se seun, was ’n wag by die ingang van die tent van ontmoeting. Daar is 212 mense as poortwagte gekies. Hulle name is volgens hulle woonplekke in die register neergeskryf. Dawid en Samuel, die siener, het hulle nog in hulle poste aangestel. Hulle en hulle nageslag het by die poorte van die huis van die Here, by die tenthuis, waggestaan. Die poortwagte het aan elke kant waggestaan: oos, wes, noord en suid. Hulle familielede, wat in hulle eie dorpies gebly het, het volgens ’n vaste program, telkens vir sewe dae, met die werk kom help. Die vier hoofwagte is gekies omdat hulle so betroubaar was. Hulle was Leviete en verantwoordelik vir die kamers en voorrade by die tempel. Hulle het naby die tempel geslaap, want hulle moes die tempel oppas en elke oggend oopsluit. Sommige deurwagte was verantwoordelik vir die offergereedskap. Hulle moes die regte hoeveelheid gereedskap voorsien en dit weer ontvang wanneer dit teruggebring is. Party van hulle moes vir die ander gereedskap sorg wat in die heiligdom gebruik is, asook vir die meel, wyn, olie, wierook en speserye. Die meng van speserysalf was die werk van sekere priesters. Mattitja, ’n Leviet en die oudste seun van Sallum, die Koragiet, was verantwoordelik vir die bakkery. Van hulle kollegas uit die Kehatfamilie moes elke sabbat die offerbrood gereedmaak. Daar was ook musiekleiers, almal hoofde van Levitiese families, wat in kamers by die tempel gebly het. Hulle was vrygestel van ander take, want hulle was voltyds besig met hulle verantwoordelikhede. Al die mense het in Jerusalem gewoon. Hulle was hoofde van Levitiese families en leiers op grond van hulle afkoms. Jeïel, die stigter van Gibeon, het in Gibeon gewoon. Sy vrou was Maäka. Hulle oudste seun was Abdon en die ander was Sur, Kis, Baäl, Ner, Nadab, Gedor, Agjo, Seker en Miklot. Miklot was Sima se pa. Hulle het naby hulle stamgenote in Jerusalem gewoon. Ner was Kis se pa en Kis was Saul se pa. Saul was Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl se pa. Jonatan se seun was Meribbaäl en Meribbaäl was Miga se pa. Miga se seuns was Piton, Melek, Tagrea en Agas. Agas was Jehoadda se pa. Jehoadda was Alemet, Asmawet en Simri se pa. Simri was Mosa se pa en Mosa was Bina se pa. Bina se seun was Refaja, sy seun was Elasa en sy seun was Asel. Asel het ses seuns gehad: Asrikam, Bokeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Hulle was Asel se seuns. Die Filistyne het Israel aangeval en oorwin. Die Israeliete het op die vlug geslaan en baie van hulle soldate is op Gilboaberg doodgemaak. Die Filistyne het toe op Saul en sy seuns toegesak en drie van sy seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak. Die geveg het al hoe swaarder rondom Saul gewoed. Die Filistynse boogskutters het hom ingehaal en raak geskiet. Saul skreeu toe vir sy wapendraer: “Vat jou swaard en maak my dood, voordat hierdie spul Filistyne op my afkom en hulle in my lot kan verlekker!” Maar sy wapendraer was verskriklik bang en wou dit nie doen nie. Saul gryp toe sy eie swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, het hy ook in sy swaard geval en só gesterf. Saul en sy drie seuns het saam gesneuwel. So het sy koningshuis tot ’n einde gekom. Toe die Israeliete wat in die vlakte gewoon het, sien dat die soldate gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle hulle dorpe ontruim en gevlug. Die Filistyne het in die gebied ingetrek en daar gaan woon. Die Filistyne het die volgende dag na die slagveld teruggekom om die dooie soldate se lyke te plunder. Daar op die Gilboaberg het hulle toe op Saul en sy seuns se lyke afgekom. Hulle het Saul uitgetrek en sy kop en sy wapens gevat en dit deur die hele Filistynse gebied rondgestuur. Só het hulle die goeie nuus van hulle oorwinning vir hulle afgode en die res van die volk gaan vertel. Hulle het Saul se wapens in hulle god se tempel neergesit en sy skedel in die Dagontempel vasgeslaan. Die mense van Jabes in Gilead het gehoor wat die Filistyne alles met Saul gedoen het. Hulle dapper soldate het toe Saul en sy seuns se lyke gaan haal. Hulle het die oorskot na Jabes toe gebring en dit onder die groot boom in Jabes begrawe. Daarna het hulle sewe dae lank niks geëet nie. Saul is dood, want hy was ontrou aan die Here. Hy het nie gedoen wat die Here gesê het nie en hy het ’n dooie se gees geraadpleeg in plaas van om by die Here raad te vra. Daarom het die Here hom laat doodgaan en die koningskap na Dawid, Isai se seun, laat oorgaan. Die hele Israel het toe na Dawid in Hebron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Ons is deel van jou familie. Vroeër, selfs toe Saul nog koning was, was dit tog maar jy wat Israel gelei het. Die Here jou God het vir jou gesê: ‘Jy moet my volk Israel oppas en hulle lei.’” Al die leiers van Israel het toe by Dawid in Hebron bymekaargekom. Hy het daar, in die Here se teenwoordigheid, ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle het hom toe as koning van Israel gesalf. Dit was net soos die Here deur Samuel gesê het dit sou wees. Dawid en al die Israeliete het toe na Jerusalem, wat toe nog Jebus genoem is, gegaan. Die Jebusiete het destyds daar rond gewoon. Hulle het vir Dawid gesê: “Jy sal nie in Jebus inkom nie!” Maar Dawid-hulle het die bergvesting Sion ingeneem, dit is nou die Stad van Dawid. Dawid het vooraf gesê: “Ek maak die een wat eerste ’n Jebusiet doodmaak, die bevelvoerder van my leërs!” Joab, wat Seruja se seun was, het die aanval gelei en só die bevelvoerder van Dawid se leërs geword. Dawid het toe in die bergvesting gaan bly. Dit is waarom hulle dit die Stad van Dawid noem. Hy het die stad van die Millo af reg rondom opgebou, terwyl Joab die res van Jerusalem herbou het. Dawid het al hoe sterker geword, want die Here, die Groot Bevelvoerder, was by hom. Hier is iets meer oor die leiers van Dawid se dapper helde. Hulle het saam met die hele Israel besluit om Dawid Israel se koning te maak, volgens die Here se belofte. Hier is ’n lys van Dawid se magtige manne. Jasobam, Gakmoni se seun, was die leier van die Drietal. Hy het eenkeer 300 man in een veldslag met sy spies doodgemaak. Eleasar, Dodo se seun, wat uit Agoag kom, is volgende. Hy was ook een van die Drietal. Hy was saam met Dawid by Pas-Dammim om teen die Filistyne te veg. Die geveg het in ’n garsland plaasgevind en die Israeliete het gevlug. Eleasar-hulle het egter in die garsland stelling ingeneem en die Filistyne teruggedryf. Die Here het hulle gered en vir hulle ’n groot oorwinning gegee. Op ’n keer was Dawid by die rots naby die Adullamgrot, terwyl die Filistyne in die Refaimvallei kamp opgeslaan het. Drie lede van die Dertigtal het na Dawid toe gegaan. Dawid was toe in sy vesting en die Filistyne het Betlehem op daardie stadium beset. Dawid het verlangend gesê: “Ek wens iemand wou nou vir my ’n bietjie water uit die put by Betlehem se poort gaan haal!” Die drie manne het dadelik deur die Filistyne se linies gebreek. Hulle het water uit die put by Betlehem se poort gaan skep en dit vir Dawid teruggebring. Hy was egter nie bereid om dit te drink nie en het dit as ’n offer vir die Here op die grond uitgegooi. Hy het gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek so iets sou doen! Die water is so goed as dié manne se bloed, hoe kan ek dit drink? Hulle het hulle lewe in gevaar gestel om die water vir my te bring.” Daarom het hy dit nie gedrink nie. Dit is die soort ding wat dié drie helde gedoen het. Abisai, Joab se broer, was die leier van die Dertigtal. Hy het met sy spies 300 man doodgemaak en vir homself naam gemaak onder die soldate. Hy was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle aanvoerder, al was hy nie een van die Drietal nie. Benaja, Jojada se seun, het van Kabseël af gekom. Hy was dapper en ’n man van die daad. Hy het eenkeer twee van Moab se dapperste vegters doodgemaak. ’n Ander keer het hy op ’n dag wat dit gesneeu het, in ’n put afgeklim en die leeu doodgemaak wat daarin was. Op ’n ander keer het hy ’n Egiptenaar doodgemaak wat twee en ’n kwart meter lank was. Die Egiptenaar se spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel. Benaja het net ’n stok by hom gehad, maar hy het die Egiptenaar se spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak. Dít is die tipe dinge wat Benaja gedoen het en waarmee hy so beroemd soos die Drietal geword het. Hy is hoër geag as die res van die Dertigtal, maar was nie een van die Drietal nie. Dawid het hom in bevel van sy lyfwag geplaas. Die dapper helde was verder: Asael, Joab se broer; Elganan, Dodo se seun uit Betlehem; Samma uit Garod; Geles uit Pelet; Ira, Ikkes se seun uit Tekoa; Abiëser uit Anatot; Sibbekai uit Gusa; Ilai uit Agoag; Marai uit Netofa; Geled, Baäna se seun uit Netofa; Ittai, Ribai se seun uit Gibea in Benjamin; Benaja uit Piraton; Hiddai uit Nagale-Gaäs; Abi-Albon uit Bet-Araba; Asmawet uit Bagurim; Eljagba uit Saälbon; die seuns van Jasen uit Gison; Jonatan, Sage se seun uit Harar; Agiam, Sarar se seun uit Harar; Elifal, Ur se seun; Gefer uit Mekera; Agija uit Pelon; Gesro uit Karmel; Naärai, Esbai se seun; Joël, Natan se broer; Mibgar, Hagri se seun; Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, Seruja se seun; Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter; Urija die Hetiet; Sabad, Aglai se seun; Adina, Sisa se seun, ’n leier uit die Rubenfamilie wat 30 man by hom gehad het; Ganan, Maäka se seun; Josafat die Mitneër; Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam uit Aroër; Jediael, Simri se seun; Joga, sy broer uit Tis; Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, Elnaäm se seuns; Jitma die Moabiet; Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba. Die volgende manne het in Siklag reeds by Dawid aangesluit. Hy was toe nog voortvlugtend en het weggekruip vir Saul, die seun van Kis. Hulle was dapper manne wat saam met Dawid geveg het. Hulle was uitgelese boogskutters, wat ’n pyl en boog én ’n slingervel ewe vaardig met die linker- of die regterhand kon hanteer. Van Saul se stamgenote uit Benjamin: Agiëser, die leier, en Joas, Semaä se seuns uit Gibea; Jesiël en Pelet, Asmawet se seuns; Beraka en Jehu uit Anatot, Jismaja uit Gibeon, ’n dapper vegter en leier onder die Dertigtal; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera; Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif; Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam uit Korag; Joëla en Sebadja, Jerogam se seuns uit Gedor. Uit die stam van Gad het daar ook dapper soldate na Dawid toe oorgeloop. Hy was toe nog in sy vesting in die wildernis. Hulle was goed toegerus om met skild en spies te veg, so vreesloos soos leeus en so vinnig soos bokke in die berge. Eser was die leier, Obadja was tweede in bevel en Eliab derde, Mismanna vierde, Jeremia vyfde, Attai sesde, Eliël sewende, Joganan agtste, Elsabad negende, Jeremia tiende, Makbannai elfde. Hierdie soldate uit Gad was leërbevelvoerders; die swakste een van hulle sou hom kon handhaaf teen 100 soldate, die sterkste teen 1 000. Dit was hulle wat die Jordaanrivier in die reëntyd, toe dit in vloed was, oorgesteek het. Hulle het toe die mense verjaag wat weerskante van die rivier gebly het. Toe daar soldate uit Benjamin en Juda aangekom het om by Dawid in sy vesting aan te sluit, het hy vir hulle gesê: “As julle in vrede gekom het om my te help, sal julle in my ’n vriend hê. Maar as julle hier is om my aan my vyande te verraai terwyl ek onskuldig is, mag die God van ons voorouers dit raaksien en julle straf.” Amasai, ’n leier in die Dertigtal, is deur die Gees in besit geneem en hy het gesê: “Ons is vír u, Dawid! Ons is aan u kant, seun van Isai! Vrede! Vrede vir u! Vrede ook vir dié wat u help, want u God help u!” Dawid het hulle toe aanvaar en as offisiere in sy leër aangestel. Toe Dawid saam met die Filistyne teen Saul gaan veg het, het daar ’n groep soldate uit die stam van Manasse by hom aangesluit. Dit het egter nie so uitgewerk nie, want die Filistynse leiers het besluit om Dawid terug te stuur. Hulle het geredeneer: “Dis te gevaarlik. As hy na sy koning Saul toe oorloop, kan dit ons ons lewe kos.” Hier is ’n lys name van die mense uit Manasse wat na Dawid toe oorgeloop het, terwyl hy na Siklag toe op pad was: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, elkeen in bevel van omtrent 1 000 soldate van Manasse. Hulle het Dawid help veg, want hulle was goeie soldate en het offisiere in sy leër geword. Daar het dag vir dag mense by Dawid aangesluit om hom te help. Só het sy bende algaande tot ’n baie groot leër gegroei. Hier volg die getalle van gewapende soldate wat hulle in Hebron by Dawid aangesluit het. Hulle was daar om Saul se koningskap aan Dawid oor te dra, soos die Here beveel het. Uit die stam van Juda: 6 800 ten volle gewapende manne met skild en spies; uit die stam van Simeon: 7 100 soldate, gereed om oorlog te maak; uit die stam van Levi: 4 600 soldate; asook Jojada, ’n leier uit die familie van Aäron met 3 700 man by hom en Sadok, ’n jong, strydlustige soldaat met 22 familielede wat almal offisiere was; uit die stam van Benjamin, Saul se stamgenote: 3 000. Die meeste van hulle het tot in hierdie stadium getrou gebly aan Saul. Uit die stam van Efraim: 20 800 soldate, gereed om oorlog te maak. Hulle was beroemd in hulle familie. Uit die halwe stam van Manasse: 18 000 soldate wat spesifiek aangewys is om Dawid te kom koning maak. Uit die stam van Issaskar: 200 leiers met al hulle familielede onder hulle bevel. Hulle was mense wat neigings en rigtings met wysheid kon beoordeel en kon aanbeveel wat Israel moes doen. Uit die stam van Sebulon: 50 000 soldate wat goed toegerus was en gereed was om oorlog te maak. Hulle was volkome lojaal aan Dawid. Uit die stam van Naftali: 1 000 bevelvoerders met 37 000 man, almal toegerus met skild en spies; uit die stam van Dan: 28 600 gewapende soldate; uit die stam van Aser: 40 000 gewapende soldate, gereed om oorlog te maak. Van oorkant die Jordaan af was daar uit die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam 120 000 soldate, almal toegerus met hulle wapens. Al hierdie soldate was in volle gereedheid en het na Hebron gekom met een doel voor oë: om vir Dawid koning oor Israel te maak. Trouens, die hele Israel het saamgestem dat hulle Dawid as koning wou hê. Hulle het drie dae lank saam met Dawid geëet en gedrink, want hulle volksgenote het die fees vir hulle voorberei. Daar het selfs ekstra kos van so ver as die gebiede van Issaskar, Sebulon en Naftali af gekom. Ekstra vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, bees- en skaapvleis is op donkies, kamele, muile en beeste aangebring fees toe, want daar was groot vreugde in Israel. Dawid het sy optrede met al sy offisiere bespreek. Toe het hy die hele vergadering Israeliete toegespreek. Hy het gesê: “As julle dit goedkeur en as die Here ons God dit so wil hê, gaan ons ’n boodskap na al die Israeliete en na die priesters en Leviete toe stuur, waar hulle ook al is, om hulle te nooi om by ons aan te sluit. Dis tyd om die verbondsark van God te gaan haal, want ons het dit in Saul se tyd verwaarloos.” Die hele vergadering het saamgestem, want hulle het besef dit is die regte ding om te doen. Dawid het toe al die Israeliete van oor die hele land byeengeroep om die verbondsark van God van Kirjat-Jearim af te gaan haal. Hulle is toe almal saam na Baäla in Juda toe, dit is Kirjat-Jearim, om die ark van God terug te bring. Die ark dra die titel: “Die Here wat bo die hemelwesens troon.” Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa van Abinadab se huis af vervoer. Ussa en Agjo was die wadrywers. Dawid en al die Israeliete was uitbundig van vreugde. Hulle het onder begeleiding van liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette gesing en gedans. Toe hulle by die dorsvloer van Kidon kom, het dit gelyk of die osse struikel. Ussa het sy hand uitgesteek om te keer dat die ark afval. Dit het die Here woedend gemaak en Hy het Ussa net daar laat dood neerslaan, omdat hy aan die ark gevat het. So is hy daar, in God se teenwoordigheid, dood. Dawid was baie ontsteld dat die Here dit met Ussa gedoen het. Hy het die plek toe Peres-Ussa genoem. Dit beteken “’n bres teen Ussa” en dit is vandag nog die plek se naam. Na die gebeure was Dawid bang vir die Here. Hy het gewonder: “Hoe kan ek die verbondsark van God ooit onder my sorg bring?” Hy het die verbondsark toe nie saamgeneem na die Stad van Dawid nie, maar dit in die huis van Obed-Edom in Gat laat stoor. Die ark van God is toe vir drie maande lank in Obed-Edom se huis gestoor. In dié tyd het die Here vir Obed-Edom en alles wat syne was, geseën. Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hulle het sederhout, klipmesselaars en skrynwerkers saamgebring om vir Dawid ’n paleis te bou. Dawid het toe besef dat die Here sy koningskap oor Israel bevestig het en dat Hy die koninkryk ter wille van sy volk Israel grootgemaak het. Dawid het in Jerusalem met nog vroue getrou en hulle het nog seuns en dogters gehad. Die name van Dawid se kinders wat in Jerusalem gebore is, was: Sima, Sobab, Natan, Salomo, Jibgar, Elisua, Elpelet, Noga, Nefeg, Jafia, Elisama, Eljada en Elifelet. Toe die Filistyne hoor dat Dawid koning geword het oor die hele Israel, het hulle almal reggemaak vir oorlog en vertrek om hom te gaan vang. Dawid het verneem dat hulle op pad was en hy en sy soldate het hulle tegemoetgegaan. Die Filistyne het hulle magte in die Refaimvallei ontplooi. Dawid het vir God gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg? Sal U my laat wen?” Die Here het geantwoord: “Val maar aan! Ek sal jou laat wen.” Dawid-hulle het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. Dawid sê toe: “God het deur my ’n bres in die vyand geslaan! Dit was soos ’n vloed wat ’n wal tref!” Dis hoekom hulle die plek Baäl-Perasim genoem het. Die Filistyne het hulle gode daar agtergelaat en Dawid het beveel dat dit verbrand moes word. Die Filistyne het die vallei later weer beset. Dawid het weer vir God gevra wat hy moes doen. “Moet hulle nie reg van voor aanval nie,” het God geantwoord. “Trek óm hulle en val hulle daar by die balsembosse aan. As jy ’n geluid soos voetstappe bo in die takke hoor, kan jy maar aanval. Dit sal die teken wees dat God voor jou uitgaan om die Filistyne te verslaan.” Dawid het gedoen wat God hom beveel het en hulle het die Filistynse leër van Gibeon af tot by Geser verslaan. Dawid se roem het na al die lande toe versprei en al die nasies was bang vir hom. Dawid het vir homself geboue in die Stad van Dawid opgerig. Hy het ook ’n plek vir die verbondsark van God ingerig en ’n tent daarvoor opgeslaan. Toe het hy gesê: “Niemand behalwe die Leviete mag die ark van God dra nie. Die Here het hulle gekies om die ark te dra en vir altyd daarvoor te sorg.” Daarna het hy die hele Israel in Jerusalem byeengeroep om die verbondsark van die Here te verskuif na die plek wat daarvoor reggemaak is. Dawid het mense uit die Aäronfamilie en Leviete bymekaargebring. Hulle was: 120 ampsdraers uit die Kehatgroep, met Uriël as leier; 220 ampsdraers uit die Merarigroep, met Asaja as leier; 130 ampsdraers uit die Gersongroep, met Joël as leier; 200 ampsdraers uit die Elisafangroep, met Semaja as leier; 80 ampsdraers uit die Hebrongroep, met Eliël as leier; 112 ampsdraers uit die Ussiëlgroep, met Amminadab as leier. Dawid het ook die priesters Sadok en Abjatar en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab geroep. Vir laasgenoemde groep het hy gesê: “Elkeen van julle is die hoof van die Levitiese families. Sorg dat julle en julle mede-Leviete rein is, sodat julle die verbondsark van die Here, Israel se God, na die plek kan bring wat ek daarvoor reggemaak het. Verlede keer, toe julle Leviete nie daar was om die ark te dra nie, het die Here ons God op ons toegeslaan. Ons het nagelaat om die Here te vra hoe ons die ark behoort te vervoer.” Die priesters en die Leviete het toe gereedgemaak om die ark van die Here, Israel se God, te gaan haal. Die Leviete het die ark van God met sy drahoute op hulle skouers gedra, net soos die Here vir Moses beveel het om te doen. Dawid het ook die Levitiese leiers opdrag gegee om hulle ampsgenote, die sangers, as ’n koor te organiseer. Hulle moes vreugdeliedere met die begeleiding van liere, harpe en simbale sing. Die Leviete het toe vir Heman, Joël se seun, Asaf, Berekja se seun, en Etan, Kusaja se seun, uit die Merarigroep aangewys. Die volgende mans is gekies as hulle assistente: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, asook Obed-Edom en Jeïel, die hekwagte. Die sangers Heman, Asaf en Etan sou die bronssimbale slaan. Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja sou op die liere speel. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja sou op die harpe speel. Kenanja was in beheer van die Leviete wat die verbondsark moes dra. Hy het dit gereël, omdat hy geweet het hoe om dit te doen. Berekja en Elkana sou die ark bewaak. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser sou op die trompette blaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook wagte by die ark. Dawid, die leiers van die Israeliete en die hoogste offisiere was baie bly toe hulle na Obed-Edom se huis toe vertrek het om die ark van die verbond van die Here te gaan haal. Omdat hulle kon sien dat God die Leviete help wat die verbondsark van die Here dra, het hulle sewe bulle en sewe ramme vir die Here geslag. Dawid, al die Leviete wat die verbondsark gedra het, die sangers en Kenanja, wat die draery gereël het, het almal klere van fyn linne aangehad. Dawid het ook nog ’n skouerkleed van linne omgehad. Die Israeliete was almal bly dat die verbondsark van die Here Jerusalem toe gekom het. Hulle was uitbundig en het dit met vreugdekrete, ramshorings en trompette, simbale, liere en harpe gevier. Toe die ark van die Here se verbond in die Stad van Dawid aankom, het Saul se dogter Mikal by die venster uitgekyk. Sy het koning Dawid sien ronddans en spring en het hom in haar hart verag. Hulle het die verbondsark neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle brandoffers en maaltydoffers vir God gebring. Toe Dawid klaar was met die offers, het hy die mense in die Naam van die Here geseën. Daarna het hy vir elke Israeliet, man en vrou, ’n broodjie, ’n stuk vleis en ’n rosyntjiekoek gegee. Dawid het die volgende Leviete aangestel om by die ark van die Here diens te doen. Hulle moes die Here, Israel se God, se roem besing, Hom dank en Hom loof. Hulle was: Asaf, die leier en Sagaria, tweede in bevel. Verder was daar Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel. Hulle het harpe en liere bespeel. Asaf het die simbale geslaan. Die priesters, Benaja en Jagasiël, het gedurig op die trompette geblaas voor die verbondsark van God. Op dié dag het Dawid vir Asaf en sy ampsgenote ’n danklied gegee om te sing: Prys die Here! Bid tot Hom! Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het. Sing liedere, maak die Here se Naam groot. Juig oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen. Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam. Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees. Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy sy voorskrifte aan ons gegee het. Julle is deel van die nageslag van Israel, die kneg van die Here. Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is. Die Here is ons God! Die hele aarde is vol van sy magtige dade. Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het, sy beloftes wat Hy aan 1 000 geslagte gegee het! Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het, en sy belofte aan Isak. Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gesluit het, toe Hy gesê het: “Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou, dit is jou erfporsie, jou besitting!” Toe Israel nog maar ’n klein groepie was, vreemdelinge in ’n nuwe land, het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek, van een klomp mense na ’n ander. Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie. Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie. God het vir hulle gesê: “Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders te lig nie. Hulle is Myne. Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.” Kom sing vir die Here, almal op aarde. vertel elke dag hoe Hy ons uit die nood gered het. Moenie stilbly by die volke nie. Vertel vir die nasies hoe sterk die Here is en wat Hy alles kan doen. Die Here is baie groot en daarom moet ons Hom met die mooiste woorde grootmaak. Hy is groter as alle ander gode. Wat is die ander gode in vergelyking met Hom? Net mooi niks nie! Mense het hulle gemaak. Maar ons Here het die hemel gemaak. As ’n mens by die Here is, word jy oorweldig; oorweldig deur hoe Hy oor alles heers, hoe belangrik Hy in vergelyking met enigiemand anders is, hoe sterk Hy is en hoe mooi alles by Hom is. Elke mens op hierdie aarde moet die Here erken vir wie Hy regtig is. Hulle moet erken dat Hy sterker en belangriker as enigiemand anders is. Gee daarom aan die Here die dank en eer wat net Hy verdien. Kom na Hom toe en bring vir Hom ’n offer wat Hom gelukkig sal maak, kniel voor Hom en erken Hom vir wie Hy regtig is. Al die mense op aarde moet besef hoe klein hulle teenoor die Here is. Hy is so sterk dat die aarde onbeweeglik vas in sy hand lê. Die hemel en elkeen wat daar is, moet van opgewondenheid oorloop. Die aarde en elkeen wat daar is, moet hulle blydskap uitskreeu. Vertel vir elkeen op hierdie aarde: “Die Here is koning!” Ook die see en alles daarin mag nie stilbly nie. Oor die velde moet die gejuig weergalm, die bome van die woud moet saam weerklink. Hierdie uitbundige jubeling is bedoel vir die Here, want Hy kom na ons toe. Hy kom om oor alle mense te oordeel. Prys die Here, want Hy is goed. Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd! Sê: Ag, Here ons God, kom help ons tog! Kom haal ons hier tussen die nasies uit, sodat ons u heilige Naam kan loof en bly kan wees oor al u goedheid! Die Here, die God van Israel, moet geloof word, nou en vir altyd. Die hele volk het uitgeroep: “Amen” en hulle het die Here geloof. Dawid het die diens wat gereeld elke dag by die verbondsark van die Here gedoen moes word, aan Asaf en sy mede-Leviete oorgelaat. Obed-Edom, Jedutun se seun, en Hosa het met 68 Leviete as hekwagte begin werk. Intussen het Dawid vir Sadok en die ander priesters by die tentheiligdom van die Here op die hoogte by Gibeon laat bly. Hulle moes volgens die Here se wet elke oggend en aand vir Israel brandoffers op die altaar vir die Here verbrand. By hulle was Heman, Jedutun en die ander wat spesifiek aangewys is om die Here se lof te besing, “want sy liefde hou vir altyd aan en aan”. Hulle het op trompette en simbale gespeel en ander musiekinstrumente gebruik om die lofliedere te begelei. Jedutun se seuns was die hekwagte. Hierna het al die mense huis toe gegaan en Dawid is huis toe om sy huisgesin te gaan seën. Toe Dawid lekker in sy paleis gevestig was, het hy vir die profeet Natan gesê: “Hier woon ek in ’n pragtige sederhoutpaleis, maar die verbondsark van die Here staan in ’n tent.” Natan het geantwoord: “Doen gerus wat u wil, want God is by u.” Dieselfde nag het die Here egter vir Natan gesê: “Gaan sê vir Dawid: Hier is die Here se boodskap vir jou: Jy moenie vir My ’n tempel bou om in te bly nie. Ek het nog nooit sedert Ek Israel uit Egipte gelei het tot nou toe, in ’n tempel gebly nie. Ek het al die tyd, van plek tot plek, in ’n tentheiligdom gebly. Het Ek ooit vir enigeen van die leiers wat Ek oor Israel aangestel het, gevra: Waarom bou jy nie vir My ’n sederhouttempel nie? “Gaan sê vir my kneg Dawid: Hier is die Here, die Groot Bevelvoerder, se boodskap vir jou: Ek het jou self gaan haal waar jy ’n herder met jou skape in die veld was en jou leier gemaak van Israel, my volk. Ek was altyd by jou, waar jy ook al was en Ek het jou vyande vir jou verslaan. Ek sal jou so beroemd maak soos die beroemdste mense op aarde en Ek sal vir Israel ’n land gee waar hulle rustig kan woon. Hulle vyande sal hulle nie meer teister soos vroeër toe Ek rigters aangestel het om hulle te lei nie. Ek sal ook al jou vyande onderdruk. “Ek maak ook nou bekend dat die Here vir jou ’n huis, ’n koningsdinastie, sal opbou. Wanneer jy die dag sterf, sal Ek jou opvolger aanwys. Hy sal een van jou seuns wees en Ek sal sy koningskap sterk maak. Dit sal hy wees wat vir My ’n huis sal bou en Ek sal sorg dat sy koningskap vir altyd veilig is. Ek sal sy Pa wees en hy sal my seun wees. Ek sal nie my ondersteuning aan hom onttrek, soos Ek met jou voorganger gedoen het nie. Ek sal hom vir altyd laat regeer en mense uit sy nageslag sal altyd koning wees.” Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en alles wat die Here vir hom gesê het, aan Dawid oorvertel. Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het? O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God. Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed. Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak. “O Here, daar is niemand soos U nie. Alles wat ons gehoor het, bevestig dit: daar is geen God behalwe U nie! Watter ander volk op aarde is soos u volk, Israel? Waar het ’n god al ooit soveel vir ’n volk gedoen deur hulle uit slawerny te bevry en hulle sy eiendom te maak? U het groot en skrikwekkende dinge vir ons gedoen en so deur die hele wêreld bekend geword. U het hulle uit Egipte laat trek en ander volke voor hulle uit verdryf. U het Israel gekies om vir altyd u volk te wees en U, o Here, het hulle God geword. “Laat alles wat U aan my en my nageslag belowe het, nou waar word. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd sal hou. As dit waar word, sal die hele wêreld U vir altyd vereer en sê: ‘Israel se God is die Here, die Groot Bevelvoerder.’ Mag die koningshuis van Dawid, u kneg, bly bestaan. “My God, ek het die vrymoedigheid om so te bid, omdat U aan my geopenbaar het dat U vir my ’n huis gaan bou, ’n koningshuis wat vir altyd sal aanhou! Want U is God, o Here, en U het hierdie goeie dinge vir my, wat u dienaar is, belowe. U het besluit om my koningshuis te seën, sodat daar altyd een van my nakomelinge op die troon sal wees. Aangesien U dit geseën het, is dit ’n seën vir altyd.” Hierna het Dawid die Filistyne verslaan. Hy het die stad Gat met sy omliggende dorpies ingeneem. Dawid het ook die Moabiete verslaan. As sy onderdane moes hulle aan Dawid belasting betaal. Dawid het ook vir Hadad-Eser van Soba tot so ver as Hamat verslaan. Hadad-Eser was juis op pad om sy greep op die gebied langs die Eufraatrivier te versterk. Dawid het 1 000 strydwaens vir hom gevat, asook 7 000 man van die strydwabemanning en 20 000 voetsoldate. Hy het al die perde, behalwe 100, se hakskeensenings afgekap sodat hulle nie kon werk nie. Die Arameërs van Damaskus het vir Hadad-Eser kom help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak. Hy het toe beheerpunte in Damaskus, die Aramese hoofstad, opgerig. Daarna was die Arameërs Dawid se onderdane. Hulle moes belasting aan hom betaal. Só het die Here Dawid laat wen waar hy ook al oorlog gemaak het. Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se wagte gedra het, afgevat en Jerusalem toe gebring. In die stede Tibgat en Kun, wat aan Hadad-Eser behoort het, het Dawid ’n groot hoeveelheid brons vir hom gevat. Later het Salomo dit laat smelt om die reusebronsbak wat bekend was as die “see”, asook die pilare buite die tempel en die bronsgereedskap wat in die tempel gebruik is, te laat maak. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid vir Hadad-Eser verslaan het, het hy sy seun Joram gestuur om Dawid geluk te wens met sy oorwinning. Hadad-Eser was in daardie stadium ook in ’n oorlog teen Toï gewikkel. Toï het ook geskenke van goud, silwer en brons vir Dawid gestuur. Koning Dawid het hierdie geskenke ook vir die Here gegee. Hy het dit ook met al die silwer en goud gedoen wat hy van ander volke afgeneem het, soos die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete. Abisai, Seruja se seun, het 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan. Hy het toe beheerpunte in Edom opgerig. Daarna was die Edomiete Dawid se onderdane. Só het die Here Dawid laat wen waar hy ook al gaan oorlog maak het. Dawid het goed en eerlik oor die hele Israel regeer. Die belangrikste amptenare in die koninkryk was: Joab, Seruja se seun, die bevelvoerder van die leër; Josafat, Agilud se seun, die staatshistorikus; Sadok, Agitub se seun, en Agimelek, Abjatar se seun, die priesters; Sausa, die staatsekretaris; Benaja, Jojada se seun, bevelvoerder van die koning se lyfwag. Dawid se eie seuns was van sy belangrikste amptenare. ’n Ruk later is Nagas, die Ammonitiese koning, dood. Sy seun Ganun het in sy plek koning geword. Dawid het besluit om dieselfde vriendskap aan Ganun te bewys as wat Nagas vroeër aan Dawid bewys het. Hy stuur toe boodskappers na Ganun toe om medelye te betoon oor sy pa se dood. Toe die boodskappers daar aankom, het die Ammonitiese familiehoofde vir Ganun gevra: “Dink jy nou regtig hulle is hier om Dawid se simpatie te betoon? Die eintlike rede is om die land te kom verken sodat hy dit vir homself kan vat.” Ganun het die boodskappers toe gevang, elkeen se baard afgeskeer, hulle klere by die boude kort afgesny en hulle na Dawid toe teruggestuur. Dawid het gehoor wat met hulle gebeur het. Hulle was te skaam om in die openbaar te verskyn en hy het vir hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer uitgegroei het. Dan kan julle terugkom.” Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Koning Ganun en die Ammoniete het omtrent 34 ton silwer gestuur om strydwaens en bemanning by die Arameërs van Mesopotamië en Maäka asook by Soba te huur. Hulle het 32 000 strydwaens gehuur en die steun van die koning van Maäka gewerf. Hy het met sy soldate buite Medeba kamp opgeslaan, terwyl die Ammoniete uit hulle dorpe saamgetrek het om reg te maak vir die oorlog. Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met sy leër van helde gestuur om te gaan veg. Die Ammoniete het by die stadspoort gereed gestaan en die ander konings het hulle magte buite in die veld opgestel. Joab het besef dat hy nou aan twee fronte sou moes veg. Hy het toe die beste vegters uitgesoek en hulle teenoor die Arameërs opgestel. Die res het hy onder bevel van sy broer Abisai geplaas. Hulle moes teen die Ammoniete veg. Hy het vir Abisai gesê: “As die Arameërs te sterk is vir my, moet jy my kom help. As die Ammoniete te sterk is vir jou, sal ek jou kom help. Veg dapper! Laat ons dapper wees om ons volk en die stede van ons God te kan beskerm. En mag die Here se wil geskied!” Joab en sy manne het die Arameërs aangeval. Die Arameërs het geswig en gevlug. Toe die Ammoniete dit sien, het hulle ook voor sy broer Abisa gevlug en in die stad gaan wegkruip. Joab het toe na Jerusalem teruggegaan. Die Arameërs het besef dat Israel hulle verslaan het. Hulle het toe dringend versterkings aangevra. Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, het dadelik met soldate van oorkant die Eufraatrivier af kom help. Dawid het dit gehoor en die hele Israel vir oorlog opgeroep. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en die Aramese leër daar ontmoet. Dawid het sy soldate vir die geveg opgestel. Toe het die Arameërs aangeval. Die Arameërs het nog ’n keer die onderspit gedelf en vir die Israeliete gevlug. Dié keer het Dawid 7 000 strydwaspanne en 40 000 voetsoldate doodgemaak. Die bevelvoerder, Sobak, is ook in die geveg dood. Toe Hadad-Eser se mense sien dat Israel hulle verslaan het, het hulle met Dawid vrede gesluit en sy onderdane geword. Die Arameërs het ook nie verder hulp aan die Ammoniete gegee nie. Die volgende lente, in die tyd toe die konings gewoonlik oorlog gaan maak het, het Joab die leër van Israel na Ammon toe gelei. Hulle het die land geplunder en uiteindelik die hoofstad, Rabba, ingeneem. Dawid het egter in Jerusalem agtergebly. Toe Dawid in Rabba aankom, het hy die Ammonitiese koning se kroon van sy kop afgehaal en op sy eie kop gesit. Die kroon was van goud, met ’n waardevolle edelsteen daarin. Dit het omtrent 34 kilogram geweeg. Hulle het ’n baie groot klomp skatte uit die stad weggedra en van die inwoners slawe gemaak wat met saag, pik en byl vir hom moes werk. Dit het hy met die inwoners van al die Ammonitiese dorpe gedoen. Daarna het Dawid en al sy mense teruggegaan Jerusalem toe. Hierna het daar oorlog teen die Filistyne in Geser uitgebreek. Sibbekai die Gusatiet het vir Sippai, ’n Refaïet, verslaan en die Filistyne is ook onderwerp. In nog ’n geveg teen die Filistyne het Elganan, Jaïr se seun, vir Lagmi, Goliat se broer uit Gat, verslaan. Lagmi se spies se steel was so dik soos ’n weefstoel se dwarsbalk. Daar was weer ’n geveg in Gat. Een van die vegters was ’n Refaïet van geboorte. Hy was groot en het ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet gehad, altesaam 24. Hy het die Israeliete getart, maar Jonatan, die seun van Dawid se broer Simea, het hom doodgemaak. Hulle was almal Refaïete van Gat wat deur Dawid en sy manskappe doodgemaak is. Satan het teen Israel gewerk en Dawid oortuig om al die mense wat in sy koninkryk bly, te laat tel. Dawid het toe vir Joab en sy offisiere beveel: “Gaan tel al die mense in Israel, van Berseba in die suide af tot by Dan in die verre noorde. Bring dan vir my die inligting, sodat ek kan weet hoeveel mense daar is.” Joab het Dawid geantwoord: “Mag die Here sy volk ’n honderd keer meer maak as wat hulle nou is! Maar waarom wil u nou hierdie telling laat doen? Almal is tog u onderdane. Waarom wil u Israel nou laat sonde doen?” Dawid het hom nie daaraan gesteur nie en Joab gedwing om die volkstelling te doen. Joab het die hele land deurgegaan en toe hy weer in Jerusalem aankom, het hy die getalle vir Dawid gegee: in die hele Israel was daar 1,1 miljoen weerbare manne en in Juda 470 000. Die opdrag van Dawid was egter vir Joab so afstootlik dat hy nie die Benjaminiete en die Leviete bygetel het nie. God was baie ontevrede oor die volkstelling en het Israel daaroor gestraf. Dawid het vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen deur die volkstelling te hou. Vergewe my, asseblief; ek besef dit was ’n dom ding om te doen.” Die Here het vir Gad, Dawid se siener, gesê: “Gaan sê vir Dawid: ‘Die Here sê: Kies een van die volgende drie moontlikhede as ’n straf oor jou sonde en Ek sal dit laat gebeur.’” Gad is toe na Dawid toe en het vir hom gesê: “Die Here sê u moet kies tussen: drie jaar hongersnood, drie maande van vernietiging deur u vyande of drie dae van ernstige siekte, terwyl die engel van die Here vernietiging oor die hele land van Israel bring. “Wat kies u, sodat ek dit vir die Here kan gaan sê?” Dawid het geantwoord: “Dit is ’n ontsettend moeilike keuse. Laat die Here my liewers self straf, want sy genade is baie groot. Moet tog net nie dat mense my in die hande kry nie!” Die Here het toe ’n siekte-epidemie in Israel laat uitbreek wat die lewe van 70 000 mense geëis het. Daarna het God ’n engel gestuur om Jerusalem ook te vernietig. Toe Hy die verwoesting sien, was die Here jammer daaroor en Hy het vir die engel gesê: “Hou op! Dit is nou genoeg.” Die engel het toe by die dorsvloer van Ornan, ’n Jebusiet, gestaan. Dawid het opgekyk en die engel tussen die aarde en hemel gesien met ’n ontblote swaard wat hy oor Jerusalem uithou. Dawid en die leiers van die volk was baie hartseer en hulle wou dit vir die Here wys. Met rouklere aan het hulle met die gesig op die grond geval. Dawid het toe vir God gesê: “Dit was ék wat beveel het dat die volk getel moes word. Dit was my fout en ek het die sonde gedoen. Wat het hierdie arme mense gedoen? Here my God, U kan my en my familie swaar straf, maar spaar tog u volk van die siekte-epidemie!” Die engel van die Here het toe vir Gad beveel om vir Dawid te sê dat hy ’n altaar op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, moes gaan bou. Dawid het dit dadelik gedoen. Ornan en sy vier seuns was besig om koring te dors. Toe hy opkyk, het hy die engel gesien. Hy en sy seuns het dadelik gaan wegkruip. Toe Ornan daarna vir Dawid na hom toe sien aankom, het hy voor Dawid neergebuig. Dawid het toe vir Ornan gesê: “Verkoop asseblief die dorsvloer aan my teen sy volle prys. Ek wil ’n altaar hier bou sodat die siekte-epidemie kan ophou.” Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.” Dawid het egter gesê: “Ek wil beslis vir alles betaal. Ek kan nie jou goed vir die Here offer en ’n brandoffer bring met iets wat my niks gekos het nie!” Hy het die grond toe vir omtrent sewe kilogram goud van Ornan gekoop en ’n altaar vir die Here op die dorsvloer gebou. Hy het brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Toe Dawid tot die Here bid, het die Here met vuur uit die hemel geantwoord wat die offer op die altaar verbrand het. Toe het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard gebêre. Toe Dawid sien dat die Here sy gebede verhoor het, het hy offers op die dorsvloer gebring. Op daardie stadium het die tabernakel van die Here, dit is die tent en die altaar wat Moses in die woestyn vir die Here gemaak het, nog op die hoogte by Gibeon gestaan. Dawid kon egter nie toe daarheen gaan om uit te vind wat die Here se wil is nie, want hy was nog te bang nadat hy die groot swaard van die engel van die Here gesien het. Dawid het toe gesê: “Dit is die plek dié waar ons die huis van die Here God en die altaar vir Israel se offers gaan bou.” Dawid het beveel dat die vreemdelinge in die land bymekaargemaak moes word. Hy het hulle die taak gegee om bouklippe vir die oprigting van die tempel van God te kap. Hy het yster beskikbaar gestel vir spykers vir die poortdeure en vir klampe. Hy het ook meer brons bymekaargebring as wat die mense kon weeg saam met hope sederstompe, want die mense van Sidon en Tirus het baie sederhout vir hom gebring. Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, maar die huis wat vir die Here gebou word, moet só ’n ongelooflik grootse bouwerk wees dat sy gelyke nie op die aarde bestaan nie. Mense in ander lande moet dit bewonder. Daarom sal ek nou al begin voorbereidings tref vir die bou daarvan.” Dawid het toe voor sy dood reeds meer as genoeg boumateriaal bymekaar begin maak. Toe het hy sy seun Salomo geroep en hom opdrag gegee om ’n huis vir die Here, die God van Israel, te bou. Dawid het vir Salomo gesê: “My seun, ek was vas van plan om ’n huis ter ere van die Naam van die Here, die God van Israel, te bou. Maar die Here het vir my laat weet: ‘Jy het baie mense in jou groot veldslae doodgemaak. Omdat jy soveel bloed laat vloei het, is jy nie die een wat ’n tempel ter ere van my Naam moet bou nie. Jy sal ’n seun hê wat ’n man van vrede sal wees. Ek sal hom rus gee van die vyandelikhede van sy bure en sy naam sal Salomo wees. Onder sy bewind sal Ek groot rus en vrede vir Israel gee. Hy is die een wat ter ere van my Naam ’n tempel moet bou. Hy sal vir my ’n seun wees en Ek vir hom ’n pa. Ek sal sy koningskap vir altyd in Israel laat aanhou.’ “Dus, my seun, mag die Here by jou wees. Mag Hy jou suksesvol maak wanneer jy die tempel volgens sy opdragte vir Hom begin bou. Mag Hy jou wysheid en begrip gee, sodat jy die wet van die Here, die God van Israel, kan uitvoer, terwyl jy oor Israel regeer, want as jy die wette en reëls wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, presies uitvoer, sal jy suksesvol wees. Wees sterk en dapper, moenie bang word of moed verloor nie! “Ek het met groot moeite materiaal vir die bou van die tempel bymekaar begin maak. Daar is al meer as 3 400 ton goud en oor die 34 000 ton silwer en soveel brons en yster dat ’n mens dit nie kan weeg nie. Ek het ook hout en bouklippe bymekaargemaak, wat jy kan aanvul as dit nodig is. Daar is genoeg vakmanne om die werk te doen: spesialisklipkappers, -skrynwerkers en -steenwerkers, verskeie kunstenaars om te gebruik vir die baie goud, silwer, brons en yster wat bewerk moet word. Spring dus aan die werk! Mag die Here by jou wees.” Dawid het vir al die leiers in Israel opdrag gegee om vir Salomo te help. “Die Here is by julle,” het hy gesê. “Hy het vir julle vrede met die volke rondom julle gegee. Hy het hulle aan my onderwerp en hulle is nou ondergeskik aan die Here en sy volk. Sorg nou dat julle doen wat die Here wil hê. Maak reg en bou die heilige plek vir die Here God, sodat julle die verbondsark van die Here en die ander heilige voorwerpe van God in die tempel ter ere van God kan kom neersit.” Toe Dawid oud was, het hy sy seun Salomo as koning van Israel aangewys. Toe roep hy al die leiers van Israel, saam met die priesters en die Leviete, bymekaar. Die Leviete van 30 en ouer is getel: ’n totaal van 38 000. Van hulle moes 24 000 in die huis van die Here werk en 6 000 die orde en regspraak behartig; 4 000 was hekwagte en nog 4 000 moes sorg vir die lof van die Here op die musiekinstrumente wat Dawid daarvoor gemaak het. Dawid het hulle in groepe ingedeel volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari. Uit die nageslag van Gerson was daar Ladan en Simi. Die seuns van Ladan was drie: Jegiël, die leier, Setam en Joël. Simi se seuns was ook drie: Selomit, Gasiël en Haran. Die ander seuns van Simi se name was Jagat, Sisa, Jeüs en Beria. Jagat was eerste en Sisa tweede. Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie en vorm saam een diensgroep van die familie. Kehat se vier seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Amram se seuns was Aäron en Moses. Aäron en sy nageslag is vir altyd afgesonder om die heilige werk in die Allerheiligste te doen, om vir die Here wierookoffers te bring, om Hom te dien en om in sy Naam die seën oor die volk uit te spreek. Moses, die man van God, se nageslag is as deel van die stam Levi gereken. Moses se seuns was Gersom en Eliëser. Subael was die leier van die nageslag van Gersom. Regabja, Eliëser se enigste seun, was die leier van die nageslag van Eliëser. Alhoewel Eliëser self nie ander seuns gehad het nie, het Regabja baie gehad. Selomit was die leier van Jishar se nageslag. Jerija was die leier van Hebron se nageslag, Amarja was die tweede, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde. Miga was die leier van Ussiël se nageslag en Jissija was die tweede. Merari se seuns was Magli en Musi. Magli se seuns was Eleasar en Kis. Toe Eleasar dood is, het hy nie seuns gehad nie, net dogters. Hulle neefs, die seuns van Kis, het met hulle getrou. Musi se drie seuns was Magli, Eder en Jeremot. Hierdie is dan die Leviete volgens hulle families met die familiehoofde volgens hulle diensgroepe, soos hulle een vir een by name aangeteken is. Elke Leviet van twintig jaar en ouer het hulle take by die huis van die Here verrig, want Dawid het gesê: “Die Here, die God van Israel, het vir sy volk rus gegee en Hy wil vir altyd in Jerusalem bly. Nou hoef die Leviete nie meer die tent van die Here met al sy toebehore van plek tot plek te dra nie.” Dit was Dawid se laaste instruksies dat al die Leviete van twintig jaar en ouer vir diens aangeteken moes word. Hulle moes die nageslag van Aäron help met die werk in die huis van die Here. Hulle was verantwoordelik vir die voorportale, die kamers, die skoonmaak van al die gewyde dinge en vir die werksaamhede van die tempeldiens. Hulle moes sorg vir die offerbrood, die meel vir die graanoffer, die ongesuurde brood, die bakplaat, die deegmengsel en vir elke inhouds- en lengtemaat. Hulle moes ook elke oggend en aand reg staan om vir die Here dank en lof te bring en moes help met die bring van al die offers vir die Here op die sabbat, nuwemaansfeeste en ander feestye. Die regte aantal Leviete moes altyd in die tempel werk, presies volgens die voorskrifte wat aan hulle gegee is. Deur hulle werk in die tempel van die Here het hulle die spesiale dienste vir die Here in stand gehou. Die afstammelinge van Aäron, die priesters, is ook in groepe vir hulle diens ingedeel. Die seuns van Aäron was: Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar. Nadab en Abihu is egter voor hulle pa dood en hulle het nie seuns gehad nie. Daarom het net Eleasar en Itamar die priesterskap gekry. Dawid het hulle met die hulp van Sadok, uit Eleasar se nageslag, en Agimelek, uit Itamar se nageslag, in groepe ingedeel om hulle werk te doen. Eleasar se nageslag is in sestien familiegroepe ingedeel en Itamar s’n in agt, omdat daar meer familiehoofde in Eleasar se nageslag was. Hulle het die groepe deur loting ingedeel, sonder bevoordeling van enige groep, sodat die mense wat God in die heiligdom moes dien, uit sowel die Eleasargeslag as uit die Itamargeslag gekom het. Die sekretaris was Semaja, ’n Leviet, Netanel se seun. Hy het die name in die teenwoordigheid van die koning, die amptenare, die priester Sadok, Agimelek seun van Abjatar en die familiehoofde van die priesters en die Leviete opgeskryf. Daar is elke keer twee families vir Eleasar en een vir Itamar geneem. Die eerste lot het op Jojarib geval, die tweede lot het op Jedaja geval, die derde op Garim, die vierde op Seorim, die vyfde op Malkija, die sesde op Mijamin, die sewende op Kos, die agtste op Abia, die negende op Jesua, die tiende op Sekanja, die elfde op Eljasib, die twaalfde op Jakim, die dertiende op Guppa, die veertiende op Jesebab, die vyftiende op Bilga, die sestiende op Immer, die sewentiende op Gesir, die agtiende op Pisses, die negentiende op Petagja, die twintigste op Esegiël, die 21ste op Jakin, die 22ste op Gamul, die 23ste op Delaja, die 24ste op Maäsja. Dit was die groepe waarvolgens hulle hulle take in die huis van die Here kom uitvoer het. Dit moes gebeur volgens die reëls wat Aäron, hulle voorvader, neergelê het in gehoorsaamheid aan die opdragte van Jahwe, die God van Israel. Hier is ’n lys van die familiehoofde van die ander Leviete: Subael uit die nageslag van Amram, Jegdeja uit die nageslag van Subael, Jissija uit die nageslag van Regabja, Selomit uit die nageslag van Jishar, Jagat uit die nageslag van Selomit, Jerija, Amarja, Jagasiël en Jekamam, al vier uit die nageslag van Hebron, Miga uit die nageslag van Ussiël, Samir uit die nageslag van Miga, Sagaria uit die nageslag van Jissija, Miga se broer. Magli en Musi was Merari se nakomelinge uit die nageslag van Jaäsija. Soham, Sakkur en Ibri was Merari se nakomelinge uit die nageslag van Jaäsija. Uit Magli se nageslag was daar Eleasar, maar hy het nie seuns gehad nie. Jeragmeël uit die nageslag van Kis. Die seuns van Musi was Magli, Eder en Jerimot. Hierdie is die nageslag van Levi. Net soos die nageslag van Aäron, het hulle ook lootjies getrek vir hulle take, sonder dat senioriteit in ag geneem is. Dit het voor koning Dawid, Sadok, Agimelek en die familiehoofde van die priesters en die Leviete gebeur. Dawid en die hoë amptenare het die families van Asaf, Heman en Jedutun vir ’n spesiale diens afgesonder. Hulle moes onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete optree. Hier is ’n lys van al hierdie mense. Uit Asaf se seuns was daar Sakkur, Josef, Netanja en Asarela. Hulle het onder Asaf se leiding gestaan. Hy het as profeet in diens van die koning opgetree. Uit Jedutun se seuns was daar Gedalja, Seri, Jesaja, Simi, Gasabja en Mattitja. Hulle het onder leiding van Jedutun, hulle pa, gestaan. Hy het met lierbegeleiding as profeet die lof aan die Here gelei. Uit Heman se seuns was daar Bukkija, Mattanja, Ussiël, Subael, Jerimot, Gananja, Ganani, Eliata, Giddalti, Romamti-Eser, Josbekasa, Malloti, Hotir en Magasiot. Hulle was almal Heman se seuns. Heman was die koning se siener in godsdienstige sake. God het aan Heman veertien seuns en drie dogters gegee. Dit het natuurlik aan hom groot aansien in die gemeenskap gegee. Dié mense was elkeen onder leiding van sy pa verantwoordelik vir die musiek in die huis van die Here. Hulle sang is begelei op simbale, harpe en liere. Asaf, Jedutun en Heman was in die koning se diens. Hulle en hulle families was opgelei om musiek te maak. Al 288 van hulle was goeie musikante. Die musikante is ook geloot vir hulle diensbeurte, sonder om te kyk of hulle jonk of oud is, leerling of leermeester. Die eerste lot het op Josef, uit die nageslag van Asaf, geval; die tweede op Gedalja en twaalf van sy seuns en familielede, die derde op Sakkur en twaalf van sy seuns en familielede, die vierde op Seri en twaalf van sy seuns en familielede, die vyfde op Netanja en twaalf van sy seuns en familielede, die sesde op Bukkija en twaalf van sy seuns en familielede, die sewende op Asarela en twaalf van sy seuns en familielede, die agtste op Jesaja en twaalf van sy seuns en familielede, die negende op Mattanja en twaalf van sy seuns en familielede, die tiende op Simi en twaalf van sy seuns en familielede, die elfde op Asarel en twaalf van sy seuns en familielede, die twaalfde op Gasabja en twaalf van sy seuns en familielede, die dertiende op Subael en twaalf van sy seuns en familielede, die veertiende op Mattitja en twaalf van sy seuns en familielede, die vyftiende op Jeremot en twaalf van sy seuns en familielede, die sestiende op Gananja en twaalf van sy seuns en familielede, die sewentiende op Josbekasa en twaalf van sy seuns en familielede, die agtiende op Ganani en twaalf van sy seuns en familielede, die negentiende op Malloti en twaalf van sy seuns en familielede, die twintigste op Eliata en twaalf van sy seuns en familielede, die 21ste op Hotir en twaalf van sy seuns en familielede, die 22ste op Giddalti en twaalf van sy seuns en familielede, die 23ste op Magasiot en twaalf van sy seuns en familielede, die 24ste op Romamti-Eser en twaalf van sy seuns en familielede. Hier volg ’n lys van almal wat poortwagte was. Uit die Koragfamilie was daar Meselemja, Kore se seun uit die geslag van Asaf. Meselemja se oudste seun was Sagaria, die tweede Jediael, die derde Sebadja, die vierde Jatniël, die vyfde Elam, die sesde Joganan en die sewende Eljehoënai. Obed-Edom se oudste seun was Semaja, die tweede Josabad, die derde Joag, die vierde Sakar, die vyfde Netanel, die sesde Ammiël, die sewende Issaskar en die agtste Peülletai. God het vir Obed-Edom werklik geseën. Sy seun Semaja het seuns gehad wat hoë posisies in hulle familie beklee het, want hulle was begaafde mense. Die seuns van Semaja was Otni, Refael, Obed, Elsabad, en sy broers was Elihu en Semakja, knap manne. Al hierdie nakomelinge van Obed-Edom, asook hulle seuns en die res van die familie, was begaafde mans wat goed was in hulle werk. Obed-Edom se groep was 62. Meselemja se agtien seuns en broers was ook begaafde mense. Gosa, van die Merarigroep, het sy seun Simri as leier aangewys al was hy nie die oudste nie. Van sy ander kinders was Gilkija, die tweede, Tebalja, die derde en Sagaria, die vierde. Gosa het dertien seuns en broers gehad. Hierdie afdelings poortwagte is na hulle leiers vernoem. Net soos die ander Levitiese diensgroepe het hulle ook by die huis van die Here gewerk. Hulle diensbeurte by die verskillende poorte is deur die lot bepaal, ongeag of die familie groot of klein was. Die lot vir die oospoort het op Meselemja geval. Die lot vir die noordpoort het op sy seun Sagaria, ’n baie verstandige raadgewer, geval. Die suidpoort is toegewys aan Obed-Edom, en die voorraadgebou aan sy seuns. Die wespoort is aan Suppim en Gosa toegewys, asook die Salleketpoort op die boonste pad. Die wagbeurte is só ingedeel dat daar ses Leviete by die oospoort was, vier elke dag by die noordpoort, vier elke dag by die suidpoort en elke keer twee by die voorrade. Ses Leviete is elke dag by die wespoort geplaas: vier langs die pad en twee by die plein. Dit was die poortwaggroepe. Hulle was uit die Korag- en die Merarifamilie. Ander Leviete onder leiding van Agija was in beheer van die skatkamers van die tempel en die stoorkamers. Uit die nageslag van Ladan, ’n lid van die Gersonfamilie, was Jegiël die leier. Jegiël se seuns was Setam en sy broer Joël. Dit was hulle taak om die skatte in die huis van die Here op te pas. Hier volg ’n lys van die mense wat van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël afgestam het. Die Amramgroep: Subael was ’n afstammeling van Moses se seun Gersom. Subael was die hoof oor die tempelskatte. Sy kollegas het hulle afkoms teruggevoer na Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit. Hierdie Selomit en sy kollegas was die amptenare wat toesig gehou het oor die stoorkamers waarin al die goed gebêre is wat deur koning Dawid, die familiehoofde, die hoër en laer offisiere en die leërhoofde vir die Here gegee is. Hulle het ’n deel van hulle oorlogsbuit gegee om die huis van die Here te help onderhou. Selomit-hulle het beheer gehad oor alles wat Samuel, die siener, Saul seun van Kis, Abner seun van Ner en Joab seun van Seruja, aan die Here gewy het en oor alle ander items wat gewy is. Die Jishargroep, Kenanja en sy familie, het allerlei soorte werk buite die tempel gedoen, soos om die orde te handhaaf en regters te wees. Die Hebrongroep, Gasabja en 1 700 van sy mense, is wes van die Jordaanrivier verantwoordelik gemaak vir alles wat Israel s’n was. Hulle moes sorg vir al die dinge van die Here en vir die koninklike diens. Dan was daar ook Jerija, die hoof van die Hebrongroep. In die 40ste jaar van Dawid se regering is ’n opname van die Hebrongroep gemaak. Daar is toe in Jaser wat in Gilead lê, uiters bekwame mans gevind. Daar was 2 700 bekwame mans tussen Jerija se mense. Hulle was almal familiehoofde. Koning Dawid het hulle aangestel oor die stamme Ruben en Gad en oor die halwe Manassestam, vir alle sake rakende die diens van God en die koning. Hier volg ’n lys van die Israelitiese familiehoofde, die hoër en laer offisiere en die koning se amptenare wat in beheer was van die afdelings wat elke maand diens gedoen het. Die afdelings het maandeliks omgeruil en elkeen het uit 24 000 man bestaan. Die eerste afdeling, wat verantwoordelik was vir die eerste maand, was onder die bevel van Jasobam, Sabdiël se seun. Hy was uit die Peresgroep en in die eerste maand was hy hoof van al die leëroffisiere. Dodai uit Agoag was in bevel van die tweede afdeling vir die tweede maand. Sy afdeling se offisier was Miklot. Benaja, die hoëpriester Jojada se seun, was in bevel van die derde afdeling vir die derde maand. Hy was ’n sterk leier onder die Dertigtal en in bevel van die 30 helde in Dawid se leër. Sy seun Ammisabad het ná hom bevel van die afdeling oorgeneem. Asael, Joab se broer, was in bevel van die vierde afdeling vir die vierde maand. Sy seun Sebadja het hom opgevolg. Samhut, afkomstig uit Jisrag, was in bevel van die vyfde afdeling vir die vyfde maand. Ira, Ikkes se seun wat uit Tekoa gekom het, was in bevel van die sesde afdeling vir die sesde maand. Geles, afkomstig uit Pelon in Efraim, was in bevel van die sewende afdeling vir die sewende maand. Sibbekai, ’n afstammeling van Serag uit Gusa, was in bevel van die agtste afdeling vir die agtste maand. Abiëser, afkomstig uit Anatot in Benjamin, was in bevel van die negende afdeling vir die negende maand. Marai, ’n afstammeling van Serag uit Netofa, was in bevel van die tiende afdeling vir die tiende maand. Benaja, afkomstig uit Piraton in Efraim, was in bevel van die elfde afdeling vir die elfde maand. Geled, ’n afstammeling van Otniël uit Netofa, was in bevel van die twaalfde afdeling vir die twaalfde maand. Elkeen van hierdie afdelings was 24 000 man sterk. Die volgende is ’n lys van die stamme van Israel en hulle leiers. Stam Leier Ruben — Eliëser, Sikri se seun Simeon — Sefatja, Maäka se seun Levi — Gasabja, Kemuel se seun Aäron (die priesters) — Sadok Juda — Elihu, een van Dawid se broers Issaskar — Omri, Migael se seun Sebulon — Jismaja, Obadja se seun Naftali — Jerimot, Asriël se seun Efraim — Hosea, Asasja se seun Manasse (wes van die Jordaan). Joël, Pedaja se seun Manasse (in Gilead) — Jiddo, Sagaria se seun Benjamin — Jaäsiël, Abner se seun Dan — Asarel, Jerogam se seun. Dit was die manne in beheer van die Israelitiese stamme. Toe Dawid die volkstelling gehou het, het hy nie die Israeliete wat jonger as twintig was, bygetel nie, want die Here het beloof om Israel so baie soos die sterre van die hemel te maak. Joab het met die sensus begin, maar dit nie klaargemaak nie, want dit het die Here se woede teen Israel laat uitbars. Daarom is die finale getal nooit in koning Dawid se boeke aangeteken nie. Die toesighouer oor die koning se skatte was Asmawet, Adiël se seun. Die toesighouer oor die koning se skatte op die platteland, in die stede, dorpe en vestings was Jonatan, Ussia se seun. Die toesighouer oor die landbouers wat die koning se lande bewerk het, was Esri, Kelub se seun. Die toesighouer oor die wingerde was Simi, afkomstig uit Rama. Die toesighouer oor die wynvoorrade in die wingerde was Sabdi, afkomstig uit Sefam. Die toesighouer oor die olywe en wildevye in die Laeveld was Baäl-Ganan, afkomstig uit Geder. Die toesighouer oor die olievoorrade was Joas. Die toesighouer oor die vee wat in Saron gewei het, was Sitrai afkomstig uit Saron. Die toesighouer oor die vee in die valleie was Safat, Adlai se seun. Die toesighouer oor die kamele was die Ismaeliet Obil. Die toesighouer oor die donkies was Jegdeja, afkomstig uit Meronot. Die toesighouer oor die kleinvee was die Hagareër Jasis. Hulle was almal toesighouers oor koning Dawid se besittings. Jonatan: Dawid se oom en raadgewer, ’n baie verstandige en geleerde man; Jegiël, Gakmoni se seun: die onderwyser van die koning se kinders; Agitofel: die raadgewer van die koning; Gusai die Arkiet: die koning se vriend; (Agitofel is later opgevolg deur Jojada, Benaja se seun en deur Abjatar); Joab: die koning se leërhoof. Dawid het al die belangrike mans van Israel in Jerusalem bymekaargeroep. Dit het die leiers van die stamme, die weermagoffisiere, die toesighouers oor die koninklike eiendomme en ander belangrike mense ingesluit. Koning Dawid het hulle toegespreek: “My broers, my volk, luister na my! Ek wou baie graag ’n gebou opgerig het vir die verbondsark van die Here wat as ’n rusplek vir die voete kon dien vir ons God. Toe ek amper reg was om te begin bou, het God vir my gesê: ‘Jy moenie ’n huis bou om my Naam te vereer nie, want jy is ’n soldaat wat baie mense doodgemaak het.’ Maar tog het die Here, die God van Israel, my uit my hele familie gekies om vir altyd Israel se koning te wees. Hy het die stam van Juda gekies om te regeer en uit die families van Juda het Hy my pa se familie gekies. Tussen al my pa se seuns het Hy my gekies om oor die hele Israel te regeer. Uit die baie seuns wat die Here my gegee het, het Hy my seun Salomo gekies om na my koning te word van sy volk Israel. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo moet my tempel bou, want Ek het hom vir My as seun gekies en ek sal vir hom ’n pa wees. Ek sal sy koningskap vir altyd laat duur as hy gehoorsaam bly aan my wette en voorskrifte, soos wat hy tans doen.’ “Daarom beveel ek julle nou hier waar die hele Israel, die Here se gemeente, teenwoordig is en waar die Here self ons getuie is: maak seker dat julle al die wette van die Here julle God uitvoer, sodat julle hierdie goeie land kan behou en dit as ’n ewige erfenis vir julle kinders kan nalaat. Salomo, my seun, leer die God van jou voorouers goed ken. Vereer en dien Hom met jou hele lewe en met ’n gewillige gemoed, want die Here weet wat in ’n mens se gedagtes aangaan en Hy verstaan jou planne. As jy Hom soek, sal Hy toelaat dat jy Hom vind, maar as jy van Hom af wegdraai, sal Hy jou vir altyd verwerp. Luister nou mooi: die Here het jou gekies om die tempel as heiligdom vir Hom te bou. Spring dadelik aan die werk!” Dawid het vir Salomo ’n bouplan gegee van die pilaargang met al die geboue wat daarmee saamgaan: die voorraadkamers, solderkamers, binnekamers en binneste heiligdom waar die ark se deksel sou kom. Dit was ’n grondplan van alles wat hy vir die tempel beplan het: van die pilaargange van die tempel, die stoorkamers vir skatte en buit wat aan die Here gewy mag word, tot by die plekke vir die priesters en Leviete wat in die tempel moes werk en vir al die gereedskap wat nodig kon wees vir hulle diens. Dawid het ook presies vir Salomo gesê hoeveel goud en silwer hy nodig sou hê vir al die verskillende soorte gereedskap. Hy het ook vir hom gesê presies hoeveel goud nodig sou wees vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelaars met hulle lampe. Hy het ook vir hom gesê hoeveel goud nodig sou wees vir die tafels met die offerbrood, en hoeveel silwer vir die silwertafels; ook hoeveel goud vir die vurke, komme en kanne van suiwer goud, die hoeveelheid goud en silwer vir elke goue beker en elke silwerbeker; asook die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar, en die hemelwesens van goud wat die verbondsark van die Here met hulle vlerke moes bedek. Dawid het vir Salomo gesê: “Ek weet al hierdie dinge omdat die Here dit aan my bekendgemaak het. Wees sterk, moenie huiwer nie, maar begin die werk doen! Moenie bang wees of jou bekommer nie, want die Here God, my God, is by jou. Hy sal jou nie in die steek laat of van jou af padgee nie. Hy sal toesien dat al die werk aan sy huis reg gedoen word. Al die priesters en Leviete is aangewys en gereed om in die tempel diens te doen en daar is vakmanne wat alles kan doen wat jy gedoen wil hê. Daarby wag die hoë amptenare en die hele volk dat jy vir hulle moet sê wat hulle moet doen.” Koning Dawid het toe vir die hele vergadering gesê: “My seun Salomo, wat deur God self gekies is as volgende koning, is jonk en onervare, maar die werk is groot. Hierdie tempel is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit word vir God die Here gebou. Ek het alles bymekaargemaak wat nodig is vir die bou van die tempel: daar is goud, silwer, brons, yster, hout en oniks met die gesteentes om in te lê, mosaïeksteentjies vir mosaïekwerk, ’n klomp verskillende edelstene en baie marmer. Omdat die huis van my God vir my so belangrik is, gee ek ook al die goud en silwer wat ek het om die bouwerk moontlik te maak. Ek gee 103 ton van Ofir se goud en 240 ton suiwer silwer om die kamers se mure mee oor te trek en vir die ander goud- en silwerwerk wat gedoen moet word. Wie is nog bereid om iets vir die Here te gee?” Al die familiehoofde, die leiers van die stamme van Israel, die hoër en laer offisiere, en die verskillende amptenare van die koning was dadelik bereid om ook by te dra. Hulle het 171 ton goud, 342 ton silwer, 616 ton brons en 3 427 ton yster gegee. Dié wat edelstene by hulle gehad het, het dit aan Jegiël gegee vir die tempelskatte. Dié volk was bly oor al die gawes, want hulle het dit vrywillig en met blydskap vir die Here gegee. Koning Dawid was ook baie bly. Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.” Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig. Die volgende dag het hulle offerdiere geslag en ter wille van Israel brandoffers vir die Here gebring. Daar is 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers geslag en drankoffers en ander soorte offers is gebring. Hulle het met baie groot vreugde geëet en gedrink en geweet dat die Here daar by hulle teenwoordig is. Hulle het toe vir Salomo, Dawid se seun, vir die tweede keer as nuwe koning gekroon. Hulle het hom gesalf as hulle leier en vir Sadok as priester. Salomo het op die troon wat die Here vir Dawid gegee het, gaan sit en sy pa opgevolg. Dit het baie goed met hom gegaan en die hele Israel was getrou aan hom. Al die familiehoofde, die leiers en Dawid se ander seuns het hulle steun vir Salomo gegee. Die Here het Salomo as koning baie eer gegee en almal het na hom opgesien. Hy het hom meer welvarend gemaak as enige koning in Israel voor hom. Dawid, Isai se seun, het oor die hele Israel regeer. Hy het 40 jaar lank in Israel regeer: sewe jaar uit Hebron en daarna vir 33 jaar uit Jerusalem. Hy was oud toe hy dood is, nadat hy ’n lang lewe, welvaart en eer beleef het. Toe het sy seun Salomo hom opgevolg. Al die gebeure van Dawid se regeringstyd is opgeskryf in Die herinnerings van Samuel die siener, Die herinnerings van Natan die profeet en die Herinnerings van Gad die siener. Hierdie geskrifte beskryf sy magtige dade toe hy koning was. Dit handel oor alles wat met hom en met Israel en met die koninkryke rondom hulle gebeur het. Salomo, Dawid se seun, het sy greep op die koningskap versterk. Die Here sy God het hom gehelp en hom al hoe sterker gemaak. Salomo het toe al die leiers van Israel, die hoër en laer offisiere, die regters, die politieke leiers en die familiehoofde bymekaargeroep. Hulle het almal na die hoogte op die berg by Gibeon gegaan. Dit is die plek waar die tent destyds gestaan het waar die Here sy volk ontmoet het. Dit is die tent wat die Here se dienaar Moses nog in die woestyn gemaak het. Die ark met die ooreenkoms tussen God en sy volk was egter nie daar nie. Dawid het die ark uit Kirjat-Jearim na Jerusalem laat bring en dit in ’n tent neergesit wat hy spesiaal daarvoor opgeslaan het. Die bronsaltaar wat Besaleël, Uri se seun en Gur se kleinseun, gemaak het, was wel in Gibeon voor die tent van die Here. Salomo en die leiers het dit besoek om die Here te raadpleeg. Salomo het die altaar voor die tent gebruik om offers te bring. Hy het 1 000 brandoffers gebring. Dié nag het die Here aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy graag hê? Ek sal dit vir jou gee.” Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir Dawid, my pa. Nou het U my in sy plek koning gemaak. U belofte aan hom is vervul. Ek is nou koning oor ’n volk wat so baie mense het soos die stof op die aarde. Gee my tog wysheid en kennis om hulle goed te regeer, want hoe anders kan ’n mens hierdie groot volk van U regeer?” God het Salomo geantwoord: “Aangesien jy jou volk wil help en nie gevra het vir rykdom of eer, of dat jou vyande moet sterf, of selfs vir ’n lang lewe nie, maar vir wysheid en kennis om goed te regeer, sal jy beslis kry wat jy gevra het. Maar Ek sal jou meer as wysheid en kennis gee: Ek sal jou ook meer geld en skatte en eer gee as wat enige koning vóór jou nog gehad het, of enigeen ná jou ooit sal hê.” Salomo het na Jerusalem toe teruggegaan en daar oor Israel regeer. Salomo het ’n sterk weermag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 1 200 ruiters ingesluit. Hy het hulle in die strydwadorpe gestasioneer en party naby hom in Jerusalem gehou. In Salomo se tyd het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe geword en sederhout so volop soos die hout van die wildevyebome wat in die laerliggende dele van die land groei. Salomo se perde is uit Egipte en Silisië ingevoer. Sy aankopers het hulle teen die gewone prys in Silisië gekoop. ’n Strydwa is destyds vir byna sewe kilogram silwer uit Egipte ingevoer en ’n perd het byna een en ’n driekwart kilogram silwer gekos. Salomo se handelaars was ook die middelmanne wat die Hetitiese en Aramese konings van strydwaens en perde voorsien het. Salomo het besluit dat die tyd ryp was om die tempel vir die Here en ’n paleis vir homself te bou. Hy het 70 000 arbeiders en 80 000 klipkappers op die heuwels aan die werk gesit en 3 600 voormanne het oor hulle werk toesig gehou. Daarby het Salomo die volgende boodskap na koning Hiram van Tirus gestuur: “U was so goed om sederhoutstompe vir my pa Dawid te voorsien toe hy sy paleis gebou het. Nou staan ek op die punt om ’n tempel vir die Here my God te bou en dit aan Hom te wy. Ek sal daar wierook vir Hom brand, gereeld die offerbrood uitpak, oggend- en aandoffers bring, sowel as die offers vir die sabbat, die nuwemaan en die spesiale feeste vir die Here ons God. Hy het ons beveel om dié dinge vir altyd te doen. “Die tempel wat ek gaan bou, sal iets groots wees, want ons God is groter as enige ander god. Maar wie kan vir Hom ’n huis bou wat by Hom pas as die hoogste hemele Hom nie eens kan huisves nie? Wie is ék nou eintlik om vir Hom ’n huis te bou, behalwe om daarin vir Hom offers te bring? “Hier is nou my versoek: stuur tog vir my ’n bekwame vakman wat met metale soos goud, silwer, brons en yster kan werk en wat vaardig is met pers, rooi en blou materiaal en wat goed is met gravering. Hy sal hier saam met vakmanne uit Juda en Jerusalem werk, wat my pa destyds aangestel het. Stuur ook vir my seder- en sipreshout en ander edelhoutsoorte wat daar in die Libanonberg groei. Ek weet hoe vaardig u mense is om bome op te saag. My werkers sal u s’n help om ’n baie groot hoeveelheid planke voor te berei, want die huis wat ek wil bou gaan so groot wees dat mense hulle daaroor sal verwonder. “Ek sal baie kos vir u werkers voorsien wat die hout moet kap. Ek sal sorg vir meer as 3 600 ton koring en net soveel gars en vir 420 kiloliter wyn en net soveel olyfolie.” Koning Hiram van Tirus het die volgende antwoord vir Salomo gestuur: “Dit is omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou hulle koning gemaak het! “Ek prys die Here, die God van Israel, wat die hemel en aarde gemaak het en wat vir Dawid so ’n wyse seun en opvolger gegee het. ’n Seun wat die insig het om vir die Here ’n tempel en vir homself ’n paleis te bou! “Ek stuur vir u Hiram, ’n meestervakman, wat baie kennis en ondervinding het. Sy ma is ’n vrou uit die stam van Dan en sy pa is hier van Tirus af. Hy het ondervinding met goud, silwer, brons, yster, klip en hout, maar ook met pers, rooi en blou materiaal en baie fyn linne. Hy is ook ’n bekwame graveerder wat die vermoë het om saam met u vakmanne en dié wat u pa destyds aangestel het, te werk. Hy sal enige ontwerp wat aan hom voorgelê word, kan maak. “Stuur nou maar die koring, gars, olie en wyn wat u vir die werkers beloof het. Ons sal al die hout wat u nodig het in die Libanonberg kap en dit as vlotte op die see afstuur tot by Joppe. Van daar af moet u dit dan by Jerusalem kry.” Salomo het toe telling gehou van al die vreemde mense wat daar in Israel gewoon het, net soos die telling wat Dawid ’n vorige keer gehou het. Hulle het agtergekom dat daar 153 600 vreemdelinge in die land was. Hy het 70 000 van hulle draers gemaak en 80 000 as klipkappers gebruik. Daar was 3 600 mense wat oor hoe hulle werk toesig gehou het. Salomo het toe die tempel op die Moriaberg in Jerusalem begin bou. Dit was op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, die plek wat sy pa Dawid vir die tempel voorberei het. Dawid het daar ’n visioen gesien. Salomo het op die tweede dag van die tweede maand van sy vierde regeringsjaar met die bouwerk begin. Die afmetings van die gebou se grondplan was 30 meter in lengte en tien meter in die breedte. Die pilaargang aan die voorkant was die volle breedte van die gebou, naamlik tien meter lank. Die plafon was tien meter hoog en die mure aan die binnekant was met goud oorgetrek. Salomo het die mure van die groot vertrek met panele van sipreshout bedek en dit met ’n dun lagie plaatgoud oorgetrek. Dit is met uitgekerfde palmbome en kettings versier. Die gebou is verder met edelstene versier. Die goud wat hy gebruik het, het van Parwajim af gekom. Al die mure, balke, deure en kosyne is met goud oorgetrek en daar is gerubfigure (dit is diere met vlerke) op die mure uitgesny. Die Allerheiligste deel van die tempel was ’n vierkant van tien by tien meter. Al daardie mure is met suiwer goud beslaan. Die goudplate wat hulle gebruik het, het omtrent twintig ton geweeg en die spykertjies waarmee dit vasgekap is meer as ’n halwe kilogram. Salomo het ook die boonste kamers met goud oorgetrek. In die Allerheiligste was daar twee gerubsbeelde van gegote metaal. Hulle is ook met goud oorgetrek. Hulle het langs mekaar gestaan en hulle vlerkspan was tien meter lank. Elke vlerk was twee en ’n half meter. Elkeen van die gerubs se buitenste vlerk het aan ’n muur van die Allerheiligste geraak. In die middel het hulle vlerke aan mekaar geraak. Die vlerke het oor die volle tien meter wydte van die Allerheiligste gestrek. Die gerubs het op hulle eie pote gestaan en in die rigting van die groot vertrek van die tempel gekyk. Oor die hele ingang van die Allerheiligste het Salomo ’n gordyn opgehang van fyn linne met pers, rooi en blou materiaal daarin. Op die gordyn was daar gerubfigure geborduur. Aan die buitekant, voor die groot vertrek van die tempel, was daar twee groot pilare. Die pilare was sewentien en ’n half meter hoog. Bo-op elkeen was daar ’n kapiteel van twee en ’n halwe meter hoog. Salomo het kettings gemaak wat boaan die pilare vasgesit is en 100 granate wat as versiering aan die kettings vasgesit is. Die pilare het weerskante van die ingang van die tempel gestaan. Die regterkantste pilaar is Jakin genoem en die een aan die linkerkant Boas. Salomo het ’n vierkantige bronsaltaar van tien by tien meter gemaak. Die altaar was vyf meter hoog. Hy het ’n groot, ronde waterbak met ’n deursnee van vyf meter in brons laat giet. Dit is die “see” genoem en was twee en ’n half meter hoog, met ’n omtrek van vyftien meter. Die see is reg rondom versier met twee rye figure wat soos osse gelyk het. Hulle is in een stuk saam met die see gegiet. Die see het op twaalf beelde van beeste gerus. Die beeste het drie-drie in die verskillende windrigtings gekyk: drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Hulle agterkante was bymekaar en die see het daarop gerus. Die dikte van die see se metaal was omtrent nege sentimeter. Die rand was in die vorm van ’n leliekelk, soos ’n beker se rand. Die see kon oor die 60 kiloliter water hou. Salomo het tien wasskottels laat maak. Hulle is vyf-vyf aan die regter- en linkerkant neergesit. Dié skottels is gebruik om die goed te was wat geoffer moes word, maar die priesters het hulleself in die see gewas. Hy het tien goue kandelare volgens spesifikasie laat giet. Hulle is in die tempel geplaas: vyf regs en vyf links. Hy het tien tafels laat maak en hulle in die tempel neergesit: vyf regs en vyf links. Toe het hy 100 goue kommetjies laat maak. Salomo het ’n voorhof vir die priesters en ’n groot binneruimte gebou en die deure daarvan met bronsplaat oorgetrek. Hy het die see aan die regterkant, by die suidoostelike hoek van die tempel, geplaas. Hiram het ook bakke, skopgrawe en kommetjies gemaak en die werk voltooi wat hy vir Salomo in die tempel moes doen. Hy het die volgende metaalvoorwerpe uit brons gemaak: twee pilare; twee kapitele bo-op die pilare; twee stelle kettingwerk wat die kapitele versier het; 400 granate wat in twee rye aan die kettingwerk vasgeheg is; die waterwaentjies met die wasbakke bo-op; die see; die twaalf beeste waarop die see gerus het; die bakke, skopgrawe, vurke en al die ander gereedskap. Dit alles het die meestervakman Hiram van gepoleerde brons vir die tempel van die Here gemaak. Die gietwerk het Salomo in die Jordaanvallei, tussen Sukkot en Saretan, laat doen. Dit is in gietvorms van klei gedoen. Daar is soveel brons vir al die goed gebruik dat dit onmoontlik was om al die metaal te weeg. Salomo het die volgende voorwerpe vir die tempel laat maak: die goue altaar; die tafels vir die offerbrood; die suiwer goue kandelare met hulle lampe, wat volgens voorskrif voor die Allerheiligste moes brand; die suiwer goue blomversierings, lampe, lampsnuiters, skêre, kommetjies, bakke en panne. Ook die deure van die Allerheiligste en die groot vertrek van die tempel is met goud oorgetrek. Al die bouwerk aan die tempel van die Here is voltooi. Daarna het Salomo al die skatte wat sy pa, koning Dawid, vir die Here gegee het, na die tempel toe gebring. Hy het die silwer en goud en al die gereedskap in die tempel se skatkamers gebêre. Salomo het toe al die familiehoofde van Israel in Jerusalem byeengeroep. Die doel was om die ark van die verbond van die Here uit Sion, die Stad van Dawid, na die tempel toe te neem. Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom. Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel. Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra. Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie. Die priesters het toe die ark in die Allerheiligste plek in die tempel ingebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit. Die gerubs se vlerke was só uitgesprei dat hulle die hele ark, met draaghoute en al, bedek het. Die draaghoute was so lank dat ’n mens hulle van die ingang van die Heilige vertrek af kon sien, maar nie van buite af nie. Dit is nog steeds so. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Hy het dit gedoen toe die Here ’n ooreenkoms met Israel aangegaan het, nadat hulle uit Egipte vertrek het. Die priesters het toe die Heilige plek verlaat. Al die priesters, of dit dié dag hulle diensbeurt was of nie, het hulleself gereinig soos wat die Here se voorskrifte bepaal. Al die Levitiese sangers, dit is al die groepe van Asaf, Heman en Jedutun, het hulle linneklere aangehad. Hulle het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere, en daar was omtrent 120 priesters met trompette by hulle. Die trompetspelers en sangers het saam die Here geprys en gedank. Met die begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle hard begin sing en die Here met die volgende woorde geloof: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Net toe het ’n wolk die tempel van die Here heeltemal volgemaak. Die priesters kon nie met hulle werk aangaan nie, want die Here se heerlikheid was binne-in die tempel. Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê dat Hy in donkerte wil woon. Maar ek het vir U ’n waardige huis gebou, ’n plek waarin U vir altyd kan woon.” Salomo het toe omgedraai en die hele Israel wat daar voor hom gestaan het, geseën. Hy het vir hulle gesê: “Ek loof die Here wat gedoen het wat Hy vir my pa, Dawid, belowe het. Die Here het vir hom gesê: ‘Sedert die tyd toe Ek my volk uit Egipte gelei het, het Ek geen stad gekies waar ’n tempel tot my eer gebou moes word nie. Ek het ook nie ’n koning gekies om my volk te lei nie. Maar nou het Ek Jerusalem as daardie stad en Dawid as daardie koning gekies.’” Salomo het voortgegaan: “My pa, Dawid, wou die tempel baie graag bou om die Here se Naam te vereer. Die Here het egter vir hom gesê: ‘Dit is goed dat jy vir My ’n tempel wil bou, maar dit sal nie jy wees wat die tempel bou nie. Een van jou seuns sal dit doen.’ “Nou het die Here sy belofte nagekom: ek het koning geword in my pa se plek en ek het die tempel tot eer van die Here, die God van Israel, gebou. Ek het die ark in die tempel gesit. Die ark is die simbool van die ooreenkoms wat die Here met Israel gesluit het.” Salomo het voor die hele volk by die altaar van die Here gaan staan en sy hande uitgesteek. Hy het op ’n bronsverhoog gestaan wat hy in die binneruimte van die tempel gesit het. Die verhoog was vierkantig met sye van twee en ’n half meter lank. Dit was ’n meter en ’n half hoog. Hy het op die verhoog geklim en voor die hele gemeente van Israel neergekniel en sy hande na die hemel uitgesteek. Toe sê hy: “O Here, God van Israel! Daar is nie in die hemel of op die aarde nog ’n god soos U nie. U hou u beloftes en bewys liefde aan almal wat aan U gehoorsaam is en wat graag doen wat U vra. U het u belofte gehou wat U aan u dienaar Dawid, my pa, gemaak het. U het die belofte gemaak en nou het U dit uitgevoer. O Here, voer tog nou ook die ander beloftes uit wat U aan hom gemaak het. U het vir hom gesê: ‘As jou nakomelinge reg optree en doen wat Ek vra, soos jy gedoen het, sal Ek sorg dat daar altyd een van hulle oor Israel regeer.’ Laat dit tog nou waar word, o Here. “Sal God nou werklik op aarde tussen mense kom woon? Die ganse hemel is te klein vir U. Hoeveel minder kan hierdie tempel wat ek gebou het U huisves! Luister tog na my gebed en my versoek, o Here. Hoor my uitroep tot U! Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.” “Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen. “As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê, luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is. “As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid, luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde, luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het. “As daar hongersnood in die land kom; of siektes, plae, sprinkane of ruspes bedreig u mense; of as die vyand hulle stede aanval; watter gevaar daar ook al dreig, en u volk bid hier oor hulle probleme tot U, luister dan tog uit die hemel waar U woon. Vergewe hulle. Gee aan elkeen wat hulle verdien, want U ken mense se diepste motiewe. Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het. “As dit gebeur dat ’n vreemdeling, soos iemand uit ’n ver land, van U hoor en hier by die tempel tot U kom bid, luister dan tog uit die hemel waar U woon. Gee vir die vreemdeling wat hy van U vra. Dan sal al die mense op aarde U leer ken en U dien soos Israel dit doen. Hulle sal dan weet dat dié tempel wat ek gebou het, ter ere van u Naam gebou is. “As U volk op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in die rigting van Jerusalem en die tempel wat ek vir U gebou het, luister dan tog uit die hemel na hulle gebed. Laat gebeur wat reg is. “As hulle teen U sonde doen (en is daar ’n mens wat nie sonde doen nie?), kan U dalk kwaad word en hulle vyand toelaat om hulle te oorwin en weg te voer na ’n vreemde land. Hulle kan daar in die vreemde land besef dat hulle verkeerd was en hulle bekeer. As hulle dan bely: ‘Ons het sonde gedoen, ons was verkeerd en goddeloos,’ en hulle bekeer hulle tot U en bid in die rigting van Jerusalem, na dié tempel wat ek vir U gebou het, luister dan uit die hemel waar U woon na hulle gebed. Vergewe hulle.” “O God, luister tog na al die gebede wat hiervandaan tot U gebid sal word. “Kom, Here, na u rusplek toe. Kom na u ark toe wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat die mense wat U dien, van vreugde sing. Moenie die een vergeet wat U spesiaal as koning aangewys het nie, al is dit net ter wille van Dawid.” Net toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel afgekom wat die verskillende offers verteer het. Daarna het die Here se heerlikheid die hele tempel gevul. Die priesters kon glad nie in die tempel ingaan nie omdat die heerlikheid van die Here dit te vol gemaak het. Toe al die Israeliete sien hoe die vuur afgekom en die Here se heerlikheid die tempel gevul het, het hulle met die gesig na die grond toe neergebuig en die Here vereer en geprys. Hulle het gesê: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Daarna het die koning en al die Israeliete begin om diere te slag as ’n offer vir die Here. Koning Salomo het 22 000 beeste en 120 000 skape geslag. Só het die koning en die volk die tempel van God ingewy. Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete ook, en hulle het gesing: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Hulle sang is begelei met die musiek van die instrumente wat Dawid laat maak het om die Here te prys. Toe het die priesters op die trompette geblaas, terwyl al die Israeliete opgestaan het. Salomo het daarna die middelste deel van die voorhof, wat reg voor die tempel geleë was, aan die Here gewy. Dit is waar hulle toe die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Dit was nodig omdat al die offers wat hulle wou verbrand, nie op die bronsaltaar kon pas wat Salomo laat bou het nie. Salomo en al die Israeliete het toe vir die volgende sewe dae lank feesgevier. Dit was ’n reusesaamtrek. Mense het daarheen gestroom van Lebo-Hamat af tot by die Egiptespruit, vanuit die hele land. Vir sewe dae na die inwyding van die altaar het hulle fees gehou. Op die agtste dag het hulle dit afgesluit en daarna vir nog sewe dae die huttefees gevier. Na al die feeste, op die 23ste dag van die sewende maand, het Salomo almal huis toe laat gaan. Almal was bly en gelukkig omdat die Here so goed vir Dawid, Salomo en sy volk Israel was. Salomo het die tempel en sy eie paleis klaar gebou. Hy het ook alles voltooi wat hy graag aan die tempel wou doen. Toe het die Here een nag aan hom verskyn en gesê: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie tempel gekies as die plek waar julle vir My moet offer. Daar kan tye kom dat Ek ’n droogte stuur, of sprinkane om die oeste op te vreet, of siekte-epidemies onder die mense. As dit gebeur en my volk verneder hulleself en hulle soek na my wil, en as hulle ophou met hulle verkeerde optrede, sal Ek hulle vergewe. Dan sal Ek hulle land gesond maak. Ek sal luister na elke gebed wat hiervandaan gebid word, want Ek het nou hierdie tempel gekies. Dit sal altyd my huis wees. Ek sal altyd self hier wees. “Nou wat jou betref: as jy optree soos jou pa, Dawid, gedoen het, en as jy my wette en voorskrifte en reëls gehoorsaam, sal Ek sorg dat niemand jou posisie as koning aantas nie. Ek herhaal die belofte wat Ek aan jou pa, Dawid, gemaak het nou ook aan jou: daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid wees om op die troon van Israel te sit. “Maar as jy My verlaat en my wette en voorskrifte vergeet en ander gode begin dien, sal Ek my volk uitroei uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal die tempel wat Ek vir Myself as woonplek gekies het, verwerp. Dit sal iets word waaroor die volke sal spot. Die tempel wat nou so pragtig is, sal dan ’n ruïne wees en almal wat daar verbyloop, sal vra: ‘Wat het hier gebeur? Waarom het die Here dit aan sy land en sy tempel gedoen?’ Dan sal die antwoord wees: ‘Hulle het mos die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Dit is Hy wat hulle uit Egipte laat kom het, maar hulle het ander gode vereer. Dít is waarom Hy al die rampe oor hulle gebring het.’” Na twintig jaar as koning het Salomo die groot bouwerk aan die Here se tempel en sy eie paleis voltooi. Hy het toe begin aandag gee aan die stede wat koning Hiram vir hom gegee het en hy het Israeliete in die stede gevestig. Ook in dié tyd het Salomo teen Hamat-Soba opgetrek en dit ingeneem. Hy het Tadmor in die woestyn opgebou, asook die voorraadstede in die omgewing van Hamat. Hy het die susterstede Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, hulle stadsmure opgebou en die stadspoorte met sluitbalke versterk. Hy het ook Baälat en sy voorraadstede versterk, asook die stede waar die strydwaens en die perderuiters gestasioneer was. Verder het hy alles aangepak wat hy graag wou doen in Jerusalem, die Libanon en in die res van die gebied onder sy beheer. Salomo het al die mense wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, maar wat in die land oorgebly het, vir dwangarbeid opgeroep. Dit is vandag nog die geval. Hy het egter nie dwangarbeid op die Israeliete afgedwing nie. Hy het hulle gebruik as soldate, as offisiere in die leër en as bevelvoerders en bemanning van sy strydwaens. Koning Salomo het 250 van hulle aangestel as toesighouers oor sy projekte. Salomo het sy vrou, wat ’n dogter van die farao was, uit die Stad van Dawid verskuif na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou moet nie in koning Dawid se paleis woon nie, want die ark van die Here was daar en daarom is dit heilig.” Daarna het Salomo offers vir die Here verbrand op die altaar van die Here wat hy net buite die pilaargang voor die tempel gebou het. Die offers het van dag tot dag gewissel, volgens die opdragte van Moses. Daar was ekstra offers op die sabbatte, op nuwemaansfeeste en by die drie jaarlikse feeste. Die drie was die fees van die ongesuurde brode, die fees van die weke en die huttefees. Hy het ook volgens die voorskrifte van Dawid die priesters se diensbeurte per afdeling gereël. Dit is ook vir die Leviete gedoen vir hulle beurte by die lofsang, hulle hulp aan die priesters soos dit daagliks nodig was en hulle diensbeurte as wagte by elke poort van die stad. Dit was ’n opdrag van Dawid, die man van God. Salomo het glad nie afgewyk van Dawid se voorskrifte oor die priesters, die Leviete of die skatkamers nie. Dit is hoe Salomo verseker het dat alle werk ten opsigte van die tempel van die Here voltooi is: van die dag toe die fondasies gelê is tot op die dag toe alles voltooi is. Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, albei hawens in Edom, aan die kus van die Rooisee, gegaan. Hiram het vir hom skepe gestuur, met ervare bemanning onder bevel van hulle eie offisiere uit Tirus. Hulle is saam met Salomo se mense Ofir toe om ’n vrag van omtrent vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo te gaan haal. Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se goeie naam en van sy besondere wysheid. Daarop het sy besluit om Jerusalem toe te gaan om hom met moeilike vrae te toets. Sy het met ’n groot groep bediendes daar aangekom. Daar was ook ’n karavaan kamele wat gelaai was met speserye, baie goud en waardevolle edelstene. Nadat sy hom ontmoet het, het sy oor alles waaroor sy nagedink het, met hom gepraat. Salomo het antwoorde op al haar vrae gehad. Niks was vir hom te ingewikkeld om te verstaan nie. Salomo se wysheid en die paleis wat hy gebou het, het die koningin van Skeba se asem weggeslaan. Sy was ook verstom oor die kos op die tafels, die amptenare rondom hom, die tafelbediendes en skinkers en die klere wat hulle gedra het, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het. Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid! Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed. Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister. Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.” Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie. (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring. Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.) Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer. Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang. Dit sluit nie eens die belasting in wat hy op die handelaars en reisigers gehef het nie. Daarby het al die Arabiese konings en die goewerneurs van gebiede ook vir Salomo goud en silwer ingebring. Koning Salomo het 200 groot en 300 klein goue skilde laat maak. Vir elke groot skild het hy byna sewe kilogram goud gebruik en vir elke klein skild omtrent drie en ’n half kilogram. Hy het al die skilde in die gebou, bekend as Woud van die Libanon, geplaas. Verder het die koning ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Die troon het ses trappe gehad. Daar was ook ’n goue voetrus aan die troon vasgeheg. Weerskante van die sitplek was daar armleunings met ’n leeu aan elke kant. Daar was ook twaalf leeus op die trappe, ses aan elke kant. Daar is nie nog só ’n koningstroon in ’n ander koninkryk te vind nie! Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. Dit was ook die geval met alles wat in die gebou met die naam Woud van die Libanon gebruik is. Silwer was in die tyd van Salomo so volop dat dit nie eintlik in tel was nie. Die koning het destyds ’n handelsvloot gehad wat beman is deur matrose wat deur Hiram beskikbaar gestel is. Hulle het een keer elke drie jaar teruggekom en dan was hulle skepe gelaai met goud, silwer, ivoor, ape en poue. Algaande het Salomo ryker en wyser geword as enige ander koning op aarde. Konings van oraloor het na hom toe gekom om na die wysheid te luister wat God vir hom gegee het. Elkeen wat hom besoek het, het ’n geskenk saamgebring. Die geskenke het goue en silwervoorwerpe, klere, wapens, speserye, perde en muile ingesluit. Salomo het staanplekke vir 4 000 perde en strydwaens en vir 12 000 kavallerie-perde gehad. Die meeste van hulle is in die strydwa-stede gestasioneer, maar ’n klompie was naby die koning, in Jerusalem. Hy was die opperheerser van al die konings van die Eufraatrivier in die noorde af tot by die land van die Filistyne en die Egiptiese grens. Verder het hy silwer so gewoon soos klippe in Jerusalem laat word en sederhout so gewoon soos die hout van die wildevyebome wat so volop in die laerliggende dele van die land groei. Salomo se perde is uit Egipte en verskeie ander lande ingevoer. Die res van Salomo se geskiedenis, van die begin af tot die einde, is opgeskryf in die Herinneringe van Natan, die Profeet, Die Profesieë van Agija van Silo en Die Gesigte van Jedi, die Siener, wat handel oor Jerobeam, Nebat se seun. Salomo het vir 40 jaar in Jerusalem oor die hele Israel regeer. Toe Salomo dood is, is hy in die Stad van Dawid, sy pa, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg. Rehabeam het na Sigem toe gegaan, waar die hele Israel bymekaar was om hom koning te maak. Toe Jerobeam, Nebat se seun, hoor dat Salomo dood is, het hy van Egipte af na Israel toe teruggekom. Hy was in Egipte omdat hy vir Salomo gevlug het. Die leiers van Israel het Jerobeam laat haal. Hy en die hele Israel het met Rehabeam gaan praat. “Jou pa het ons baie swaar laat kry,” het hulle vir Rehabeam gesê. “As jy die dwangarbeid wat hy ons laat doen en die belastingplig verlig, sal ons lojaal bly en jou as ons koning aanvaar.” Rehabeam antwoord toe: “Kom oor drie dae terug, dan sal ek julle antwoord.” Hulle is toe daar weg. Rehabeam het die saak met die ouer raadgewers, wat ook vir sy pa, Salomo, raad gegee het, gaan bespreek. “Wat dink julle?” het hy gevra. “Hoe moet ek op hulle versoek reageer?” Hulle het gesê: “As jy mooi werk met dié mense en goed is vir hulle, en as jy moeite doen om hulle tegemoet te kom, sal hulle vir altyd jou getroue onderdane bly.” Rehabeam het hulle raad egter verwerp en die saak met die jonger manne wat saam met hom grootgeword het, gaan bespreek. Hy het vir hulle gevra: “Wat dink julle moet ek die mense antwoord wat vir my gevra het om die las wat my pa hulle opgelê het, ligter te maak?” Die jongmanne het gesê: “Jy moet die klomp wat kla só antwoord: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf! As julle dink hy het julle swaar laat kry, wag maar tot julle sien wat ek kan doen! My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!’” Drie dae later het Jerobeam en al die ander mense teruggekom soos Rehabeam versoek het. Hulle wou graag hoor wat die koning besluit het. Rehabeam het toe baie lelik met hulle gepraat omdat hy die raad van die ouer raadgewers verwerp het en na die jongmanne geluister het. Hy het gesê: “My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!” Die koning het glad nie geluister na die mense se versoek nie. Dit was soos God beplan het. So het die profesie van die Here waar geword wat die profeet Agija van Silo teenoor Jerobeam uitgespreek het. Toe die hele Israel besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle hom toegesnou: “Dawid is niks van ons nie! Ons het geen saak met Isai se seun nie! Laat ons almal teruggaan huis toe, Israel! Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!” Hulle is toe almal terug huis toe. Rehabeam het slegs koning gebly oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. Koning Rehabeam het daarna vir Hadoram, sy bevelvoerder oor die dwangarbeid, gestuur om die orde te herstel. Die Israeliete het hom aangeval en met klippe doodgegooi. Toe dié nuus koning Rehabeam bereik, het hy blitsvinnig op sy strydwa gespring en Jerusalem toe gevlug. Die noordelike stamme van Israel het van toe af geweier om deur ’n afstammeling van Dawid regeer te word. Dit is vandag nog so. Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit die stamme van Juda en Benjamin opgeroep. Hy wou teen Israel gaan oorlog maak om sy koningskap oor hulle te herstel. Die Here het met Semaja, die man van God, gepraat: “Gaan sê vir Rehabeam, Salomo se seun en koning van Juda, asook vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: ‘Hier is die Here se boodskap vir julle: Moenie teen julle familie gaan veg nie. Gaan huis toe, want wat gebeur het, het Ek laat gebeur.’” Hulle het na die Here se opdrag geluister en nie teen Jerobeam gaan oorlog maak nie. Rehabeam het in Jerusalem bly woon. Hy het verskeie stede se mure sterker gebou om Juda te beveilig. Hy het die volgende stede in Juda en Benjamin tot vestingstede versterk: Betlehem, Etam, Tekoa, Bet-Sur, Soko, Adullam, Gat, Maresa, Sif, Adorajim, Lakis, Aseka, Sora, Ajalon en Hebron. Hy het die stede versterk en militêre bevelvoerders daar geplaas. By elkeen is daar ’n voorraad kos, olyfolie en wyn geplaas, asook skilde en spiese om die plekke verder te versterk. So het net Juda en Benjamin onder sy beheer gebly. Al die priesters en Leviete wat tussen die noordelike stamme gewoon het, was aan Rehabeam se kant. Die Leviete het selfs hulle grond en besittings verlaat om na Juda en Jerusalem te trek. Dit was omdat Jerobeam en sy seuns hulle nie wou toelaat om priesters vir die Here te wees nie. Hy het sommer sy eie priesters aangestel vir die heiligdomme, afgode en kalwers wat hy gemaak het. Al die mense uit die noordelike stamme van Israel wat graag die Here, die God van Israel, wou dien, het die priesters en Leviete Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle aan die Here, die God van hulle voorouers, offers bring. Dit het die koninkryk van Juda versterk. Hulle het drie jaar lank vir Rehabeam, Salomo se seun, ondersteun. Hulle het toegewyd probeer om die Here te dien soos hulle dit in die tyd van Dawid en Salomo gedoen het. Rehabeam het met sy niggie Magalat getrou. Haar pa was Jerimot, een van Dawid se seuns, en haar ma was Abihajil, ’n dogter van Isai se seun Eliab. Hy en Magalat het drie seuns gehad. Hulle was Jeüs, Semarja en Saham. Later het Rehabeam ook met Maäka, Abisalom se dogter, getrou. Hulle twee het vier seuns gehad: Abia, Attai, Sisa en Selomit. Rehabeam was liewer vir Maäka as vir sy ander vroue en byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad en was die pa van 28 seuns en 60 dogters. Rehabeam het Maäka se seun Abia leier onder die prinse gemaak om te wys dat hy die volgende koning sou word. Hy was ook wys genoeg om vir sy ander seuns verantwoordelikhede te gee. Hy het hulle in die versterkte stede van Juda en Benjamin geplaas. Daar het hy verseker dat hulle baie kosvoorrade ontvang. Hy het ook gesorg dat hulle baie vroue het om mee te trou. Nadat Rehabeam sy koningskap goed gevestig het, het hy onafhanklik begin optree. Hy het die Here se wet verwerp. Die hele Israel het dieselfde begin doen. As gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan die Here het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Dit het gebeur in die vyfde jaar dat Rehabeam regeer het. Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 berede soldate en ’n ontelbare klomp voetsoldate opgetrek. Die voetsoldate was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete. Sisak het die versterkte stede van Juda maklik oorwin en toe teen Jerusalem opgetrek. Semaja, die profeet, het Rehabeam en die leiers van Juda gaan opsoek. Hulle was in Jerusalem bymekaar om te besluit hoe hulle op Sisak se aanval moes reageer. Semaja het vir hulle gesê: “Hier is die Here se boodskap vir julle: ‘Julle het My in die steek gelaat; daarom laat Ek julle nou met Sisak se aanval in die steek.’” Die leiers van Israel en die koning was verleë oor hulle sondes en hulle het laag voor die Here gebuig. Hulle het vir Hom gesê: “Die Here doen altyd wat reg is!” Toe die Here sien hoe jammer hulle is, het Hy weer vir Semaja ’n boodskap gegee: “Hulle is jammer oor hulle sonde. Maar Ek gaan hulle nie heeltemal vernietig nie. Ek sal nie nou vir Sisak gebruik om al my woede op Jerusalem uit te haal nie. Hulle sal wel vir ’n ruk sy onderdane word sodat hulle kan leer hoeveel beter dit is om My te dien in plaas van ’n aardse koning.” Koning Sisak van Egipte het Jerusalem ingekom en beslag gelê op al die skatte wat in die tempel en die paleis gestoor was. Hy het ook die goue skilde gevat wat Salomo laat maak het. Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die plek daarvan gemaak. Hy het dit in die sorg gelaat van die bevelvoerders van die wagte wat die tempel se ingang opgepas het. Wanneer die koning tempel toe gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra. Daarna het hulle dit in die wagkamer teruggesit. Omdat Rehabeam jammer was oor sy sonde, het die Here hom vergewe en nie vir hom kwaad gebly nie. Die Here het hom nie totaal vernietig nie. Rehabeam het sy posisie in Juda versterk en aanhou regeer. Hy was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here onder al die stamme van Israel uitgekies het as die plek waar Hy vereer wou word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Hy was nie ’n goeie koning nie, want hy het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Die res van Rehabeam se geskiedenis, van begin tot einde, is opgeskryf in Die Herinneringe van Semaja, die Profeet en Die Herinneringe van Iddo, die Siener en in die amptelike geslagsregisters. Rehabeam en Jerobeam het gedurig teen mekaar oorlog gemaak. Na Rehabeam se dood is hy in Jerusalem begrawe. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg. Abia het in die agtiende jaar dat koning Jerobeam van Israel regeer het, die koning van Juda geword. Abia het drie jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Miga, ’n dogter van Uriël wat in Gibea gebly het. Daar het ’n oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek. Abia het met 400 000 uitgesoekte soldate van Juda gaan veg. Jerobeam het oor 800 000 dapper soldate van Israel beskik. Abia het op Semarajimberg, in die bergland van Efraim, gaan staan. Toe het hy die Israeliete toegespreek: “Luister na my, Jerobeam en al julle Israeliete! Julle weet tog dat die Here, Israel se God, die koningskap van Israel vir Dawid en sy nageslag gegee het. Hy het belowe dat dit vir altyd so sou wees. Toe het Jerobeam, Nebat se seun, in opstand gekom. Hy wat ’n onderdaan van Salomo was, het gerebelleer. Hy en ’n bende nikswerd mense het saamgespan teen Salomo se seun en opvolger Rehabeam. Rehabeam was toe nog jonk en onervare. Daarom kon hy nie teen hulle standhou nie. Glo julle regtig dat julle staande sal kan bly teen die koninkryk van die Here wat deur ’n afstammeling van Dawid gelei word? “Julle leër is wel baie groot, maar julle gode is daardie goue kalwerbeelde wat Jerobeam vir julle gemaak het. Daarby het julle die priesters van die Here en die Leviete weggejaag. Julle stel sommer julle eie priesters aan, net soos die vreemde nasies in ander lande. Enigiemand wat daar by julle opdaag met ’n jong bul en sewe ramme kan, as hy wil, ’n priester word vir daardie sogenaamde gode van julle. “By ons is dit heeltemal anders: die Here is ons God en ons bly steeds gehoorsaam aan Hom. Ons priesters kom almal uit die nageslag van Aäron en die Leviete doen diens by die tempel. Hulle offer elke oggend en elke aand diere en geurige wierook vir die Here; hulle sit gereeld offerbrood op die tafel wat daarvoor skoongemaak is en hulle steek elke aand die lampe van die goue kandelaar op. “Ons doen presies wat die Here ons God vir ons sê, maar julle het Hom verlaat. “Kyk maar! Die Here is self ons bevelvoerder en die priesters staan reg om die trompette te blaas dat ons julle kan aanval! Israeliete, moet tog nie oorlog maak teen die Here, die God van julle voorouers, nie. Julle kan tog nie wen nie!” Jerobeam het intussen van sy soldate agter die Judeërs om gestuur, sodat hulle hulle van voor en van agter af kon aanval. Die Judeërs het skielik besef dat hulle van albei kante aangeval word. Hulle het die Here gevra om hulle te help. Die priesters het intussen op die trompette geblaas. Die manne van Juda het ’n oorlogskreet geskree. Toe het die Here Jerobeam en die Israeliete voor Abia en Juda verslaan. Die Israeliete het gevlug vir die Judeërs, want die Here het die Judeërs laat wen. Abia en sy manne het Israel groot verliese toegedien: daar is op dié dag 500 000 van Israel se uitgesoekte soldate dood. So het Juda vir Israel verslaan omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, vertrou het. Abia en sy leër het Jerobeam-hulle agtervolg en ’n paar Israelitiese stede, soos Bet-El, Jesana en Efron, met hulle omliggende dorpies, beset. Jerobeam kon sy mag nie in Abia se tyd herstel nie. Uiteindelik het die Here hom skielik laat doodgaan. Maar Abia het al sterker geword. Hy het met veertien vroue getrou en hulle het 22 seuns en sestien dogters gehad. Die res van Abia se geskiedenis, wat hy gedoen en gesê het, is in Die Kommentaar van die Profeet Iddo opgeskryf. Abia is oorlede en hy is in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het na hom koning geword. Hy het gesorg vir tien jaar van rus in die land. Asa het die dinge gedoen wat vir God goed en reg was. Hy het die vreemde altare en heilige plekke vir ander gode tot niet gemaak, die heilige pilare omgegooi en die stompe ter ere van die godin Asjera afgekap. Hy het die mense van Juda aangemoedig om te doen wat die Here, die God van hulle voorouers, vra en om sy wette en reëls na te kom. Asa het die heilige plekke en altare waarop hulle wierook vir vreemde gode gebrand het, in elke dorp van Juda vernietig. Daarom het daar vir ’n hele ruk vrede in Juda geheers. Hy het ook die versterkte stede van Juda herbou terwyl die vrede wat van die Here af kom, daar geheers het. Asa het sy mense opgeroep en gesê: “Laat ons die stede nou herbou terwyl dit rustig is. Ons moet mure met verdedigingstorings om die stede bou en hekke insit wat kan toegrendel. Dis nou die tyd om te bou, want ons het gedoen wat die Here wou hê; daarom het Hy vir ons vrede met al ons bure gegee.” Hulle het die bouwerk toe voorspoedig afgehandel. Asa se leër het uit twee groepe bestaan. Daar was 300 000 man uit Juda, wat elkeen toegerus was met ’n skild en ’n spies. Dan was daar ’n verdere 280 000 man uit Benjamin, elkeen toegerus met ’n skild en pyl en boog. Hulle was uitgesoekte soldate. Op ’n keer het Serag, ’n Etiopiese offisier, Juda met ’n leërmag van ’n miljoen soldate en 300 strydwaens aangeval. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder waar Asa sy soldate in die Sefatalaagte opgestel het. Asa was bang en het vir die Here sy God gesê: “Here, U steur U mos nie aan getalle wanneer U iemand help nie. Help ons tog nou, o Here! Ons vertrou op U en ons veg teen hierdie skare in u Naam. Here, U is ons God. Menslike krag kan nie teen U standhou nie.” Die Here het die Etiopiërs toe deur Asa en die Judese leër verslaan en die vyand het gevlug. Asa en sy soldate het hulle tot by Gerar agtervolg. Soveel Etiopiërs is in die veldslag dood dat dit onmoontlik was om hulle te organiseer. Hulle is deur die Here en sy leër vernietig. Die Judese soldate het baie buit afgeneem. Dit het aangehou terwyl hulle die stede rondom Gerar aangeval en geplunder het, want daar was baie om te vat. Die mense van daardie stede het baie bang geword vir die Here se ontsettende mag. Die Judeërs het ook die veewagters in hulle tente aangeval en baie skape en kamele gebuit. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. God se Gees het Asarja, Oded se seun, beetgepak. Hy het uitgegaan om vir koning Asa te ontmoet toe hulle van die geveg af terugkom. Hy het gesê: “Luister na my, Asa! Luister, julle mense van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle wees, solank julle by Hom bly. Wanneer julle Hom soek, sal Hy toelaat dat julle Hom vind. Maar as julle van Hom af weggaan, sal Hy van julle af weggaan. Israel was vir ’n lang ruk sonder God en ook sonder ’n priester om hulle van God te leer én sonder sy wet. Maar in moeilike tye, as julle by Israel se God, die Here, hulp gaan soek het, het Hy elke keer gehelp. In sulke tye was niemand veilig nie. Daar was groot onrus in al die lande: die een nasie het teen die ander geveg en stede teen mekaar, want God het hulle met verwarring geteister. Vertrou op die Here. Moenie moedeloos word nie. Julle sal vir julle werk beloon word.” Toe Asa die boodskap van die profeet hoor, het hy moed geskep. Hy het die afgode uit al die dorpe van Juda en Benjamin verwyder, ook dié wat in die dorpe in die Efraimsberge was wat hy verower het. Hy het ook die altaar van die Here herstel wat by die tempel gestaan het. Asa het toe al die mense van Juda en Benjamin, asook die groot groep uit Efraim en Manasse en Simeon wat tussen hulle kom bly het, bymekaargeroep. Baie mense het tydens Asa se regering na Juda toe getrek omdat hulle kon sien dat die Here, sy God, hom ondersteun het. Hulle het in die derde maand van die vyftiende jaar waarin Asa regeer het, in Jerusalem bymekaargekom. Dié dag het hulle baie van die diere wat hulle in die oorlog afgevat het, vir die Here geslag. Hulle het 700 beeste en 7 000 skape en bokke geoffer. Daarna het hulle ’n ooreenkoms met mekaar gesluit dat hulle die Here, die God van hulle voorouers, met alles in hulle vermoë sou dien. Hulle het besluit om enigiemand, oud of jonk, man of vrou, wat dit nie wou doen nie, dood te maak. Hulle het hulle belofte aan die Here met vreugde uitgeskree terwyl hulle hard op die trompette en ramshorings blaas. Al die mense van Juda was bly oor die belofte wat hulle gemaak het, want hulle het dit regtig bedoel. Hulle wou graag doen wat die Here van hulle verwag het en die Here het hulle gehelp. Hy het toe vir hulle vrede met al die volke rondom hulle gegee. Asa het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder afgesit omdat sy ’n vieslike pilaar ter ere van Asjera gemaak het. Asa het die ding afgekap, in stukke gebreek en toe in die Kidronvallei gaan verbrand. Al is die plekke waar ander gode gedien is, nie almal uit Israel verwyder nie, was Asa sy lewe lank uiters getrou aan die Here. Hy het die goue en silwervoorwerpe wat hy en sy pa spesiaal vir die Here bymekaargemaak het, in die tempel gaan sit. Tot in die 35ste jaar waarin Asa regeer het, was daar nie weer oorlog nie. In die 36ste jaar dat Asa regeer het, het Israel se koning, Baesa, teen Juda begin oorlog maak. Baesa het Rama tot ’n baie sterk en veilige stad opgebou om te keer dat Asa se mense Juda kon verlaat of inkom. Asa het toe silwer en goud uit die tempel en sy paleis se skatkamers laat haal en dit vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad het in Damaskus gewoon en was die koning van Aram. Asa se boodskap aan Ben-Hadad was: “Hiermee hernu ek die ooreenkoms wat reeds tussen my pa en u pa bestaan het. Hier is ’n geskenk van silwer en goud vir u. Nou wil ek vra dat u u ooreenkoms met koning Baesa van Israel moet verbreek. Val hom aan, sodat hy my kan uitlos.” Ben-Hadad het besluit om te doen wat Asa gevra het. Hy het die bevelvoerders van sy leërs gestuur om Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan en Abel-Maim verwoes en die voorraadstede van Naftali geplunder. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik met sy bouwerk in Rama opgehou. Asa het toe vinnig ingespring. Hy het al die mense van Juda opgeroep om die bouklip en hout wat Baesa in Rama gebruik het, weg te dra. Hulle het dit toe gebruik om die dorpe Geba en Mispa op te bou. In dié tyd het Hanani, die siener, met koning Asa gaan praat en vir hom gesê: “U het nou op die koning van Aram vertrou om u te help, in plaas daarvan om op die Here, u God, te vertrou. Daarom het u ’n kans om die leër van Aram te verslaan deur u vingers laat glip. Onthou u met hoe ’n groot leër die mense van Kus en Libië u aangeval het? Daar was verskriklik baie strydwaens en perderuiters. Maar toe het u op die Here vertrou om te help en Hy het u laat wen. Onthou net, die Here soek na mense wat Hom volkome vertrou; dan help Hy hulle. Hierdie keer was u dom! Van nou af sal u die hele tyd oorlog maak.” Asa het só kwaad geword vir die siener oor wat hy gesê het dat hy hom in die tronk gegooi het. Dit was juis ook in daardie tyd dat Asa van sy mense begin onderdruk het. Asa se hele geskiedenis is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. In sy 39ste regeringsjaar het Asa ’n ernstige voetsiekte gekry. Selfs toe dit later sy lewe in gevaar gestel het, het hy steeds nie die Here nie, maar sy dokters vertrou om hom gesond te maak. Hy is dood in die 41ste jaar dat hy regeer het. Hy is toe in die graf begrawe wat hy vir homself in die Dawidstad laat uitkap het. Die bed waarop sy liggaam uitgelê is, was gegeur met speserye en geurige olies. By die begrafnis het hulle ’n baie groot vuur aangesteek om die laaste eer aan hom te bewys. Asa se seun Josafat het hom opgevolg. Josafat het sy leër sterker gemaak om teen Israel te kan veg. Hy het soldate in die sterk stede in Juda geplaas en wagposte oral in Juda opgestel, asook in die dorpe van Israel wat sy pa gevat het. Die Here het Josafat gehelp, want hy het die voorbeeld van sy pa se vroeë jare gevolg. Hy het hom nie met die Baäls, die gode van die Kanaäniete, opgehou nie. Hy het die Here, sy pa se God, gedien en na al sy opdragte geluister. Dit was anders as wat die konings van Israel gedoen het. Daarom het die Here Josafat ’n sterk koning gemaak. Die mense van Juda het vir hom geskenke gebring. So het hy ryk en belangrik geword. Hy was ywerig om die Here te dien; daarom het hy die plekke vernietig waar die afgode vereer is en die Asjerapale stukkend gekap. In die derde jaar dat hy regeer het, het Josafat van sy belangrikste amptenare gestuur om die mense in al die stede van Juda te gaan leer. Die amptenare was Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Hy het ook ’n klompie Leviete saamgestuur. Hulle was Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hy het ook twee priesters, Elisama en Joram, saamgestuur. Hulle het Die Wetboek van die Here saamgeneem en dwarsdeur Juda na al die stede toe gegaan en die mense van die Here se wet geleer. Al die volke rondom Juda het verskriklik bang geword vir die Here. Niemand het daaraan gedink om teen Juda oorlog te maak nie. Party Filistyne het vir Josafat geskenke en ’n klomp silwer gebring. Daar was selfs Arabiere wat vir hom ’n groot klomp kleinvee gebring het: 7 700 skaapramme en 7 700 bokramme. Josafat het al hoe sterker geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou, waar hy groot voorrade gestoor het. Josafat het ’n leër van uitgesoekte soldate in Jerusalem gehad. Hulle is volgens hulle families georganiseer. Uit Juda was daar 300 000 soldate. Hulle was in eenhede van 1 000 elk, almal onder bevel van Adna. Onder hom was Joganan, met 280 000 soldate onder sy bevel. Die volgende offisier was Amasja, Sikri se seun, wat vrywillig vir die Here se diens aangemeld het. Hy het 200 000 soldate onder sy bevel gehad. Uit Benjamin was daar 200 000 soldate wat almal met pyle en boë en met skilde uitgerus was. Hulle bevelvoerder was die legendariese Eliada. Onder hom was Josabad, met 180 000 soldate onder sy bevel. Dié soldate was almal in Jerusalem gestasioneer. Die koning kon hulle enige tyd gebruik. Dit is behalwe die soldate wat hy in die versterkte stede van Juda ontplooi het. Josafat was baie ryk en belangrik. Later is sy seun met Agab, die koning van Israel, se dogter getroud. ’n Paar jaar later het hy by Agab in Samaria gaan kuier. Agab het ’n groot onthaal vir hom en sy amptenare gereël. Hulle het ’n klomp skape en beeste vir die geleentheid geslag om Josafat te probeer oorhaal om Ramot in Gilead saam met Israel aan te val. Agab vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my teen Ramot in Gilead gaan oorlog maak?” Josafat het gesê: “Maar natuurlik! Ons is mos familie. My soldate is tot jou beskikking.” Maar Josafat het bygevoeg: “Laat ons net eers seker maak wat die Here daarvan sê.” Agab het toe 400 profete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gevra: “Kan ons voortgaan met die plan om teen Ramot in Gilead te gaan veg, of moet ons dit los?” Hulle antwoord toe: “Gaan maar, want God sal julle laat wen.” Josafat was nog nie tevrede nie. “Is hier nie nog ’n profeet by wie ons kan hoor wat die Here wil hê nie?” het hy gevra. Agab het geantwoord: “Ja, hier is nog één, maar ek haat hom. Hy het nooit ’n goeie boodskap vir my nie. Hy het net altyd negatiewe dinge vir my te sê. Hy is Miga, Jimla se seun.” “Jy moet darem nie só praat nie!” sê Josafat toe. “Kom ons hoor wat hy sê.” Die koning van Israel het toe ’n amptenaar gestuur en gesê: “Gaan haal dadelik vir Miga, Jimla se seun.” Die twee konings het op hulle koninklike stoele op die dorsvloer net buite die ingang na Samaria gesit. Terwyl hulle daar sit en wag het met hulle koninklike klere aan, het al die profete hulle boodskappe gebring. Een van die profete was Sedekia, Kenaäna se seun. Hy het vir hom ysterhorings gemaak. “Met sulke horings,” het hy gesê, “sal u die Arameërs doodmaak.” Al die profete het saamgepraat en die konings aangemoedig om by Ramot in Gilead te gaan veg, “want,” het hulle gesê, “die Here sal u laat wen.” Die boodskapper wat Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Luister nou ’n bietjie na my. Al die profete het vir die koning ’n oorwinning voorspel. Ek hoop net jy sal dieselfde sê en vir die koning ’n goeie boodskap gee!” Miga het hom geantwoord: “Ek sal net sê wat die Here vir my sê om te sê!” Toe hy by die koning kom, sê Agab vir hom: “Miga, kan ons na Ramot in Gilead toe gaan om te gaan veg, of moet ons dit los?” “Gaan gerus,” het Miga geantwoord, “dit sal goed gaan en julle sal wen.” Die koning het skerp reageer: “Hoeveel keer moet ek by jou aandring om niks anders vir my te sê as wat die Here vir jou sê nie?” Toe antwoord Miga hom: “In ’n visioen het ek Israel op die berge sien ronddwaal, net soos skape sonder ’n skaapwagter. Toe hoor ek die Here sê: ‘Hulle leier is dood, laat hulle in vrede huis toe gaan.’” Israel se koning herinner toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy kan niks goeds vir my voorspel nie. Dis net altyd slegte nuus!” Maar Miga het voortgegaan en die res van die visioen wat die Here hom laat sien het, vir hulle beskryf: “Ek het die Here op sy troon sien sit. Al die hemelwesens het weerskante voor Hom gestaan. “Die Here sê toe: ‘Wie van julle sal Israel se koning, Agab, kan ompraat om Ramot in Gilead te gaan aanval, sodat hy daar kan doodgaan?’ “Toe kom staan daar ’n gees voor die Here en sê: ‘Ek sal hom kan ompraat.’ “‘Maar hoe?’ het die Here hom gevra. “Hy het geantwoord: ‘Ek sal sorg dat al sy profete vir hom lieg.’ “‘Jy kan dit maar gaan doen, want jy sal dit regkry!’ het die Here gesê. “Verstaan nou mooi, geagte koning. Die Here het toegelaat dat die profete vir u lieg, want Hy beplan ’n groot ramp vir u.” Toe hy dit hoor, het Sedekia op Miga afgestorm en hom in die gesig geslaan. “Hoe is die Here se Gees nogal van my af weg om met jou te gaan praat?” wou hy weet. Miga het gesê: “Jy sal dit sommer gou uitvind, wanneer jy in ’n kamer moet invlug om weg te kruip!” Die koning het beveel: “Vang Miga en vat hom vir Amon, die stadsbevelvoerder, en vir my seun Joas. Sê vir hulle ek sê hulle moet hom in die tronk gooi. Hy moet net brood en water kry, tot ek veilig van die geveg af terugkom.” Maar Miga het vir die koning gesê: “As u veilig terugkom, het die Here nooit deur my gepraat nie,” en vir die omstanders het hy gesê: “Onthou maar wat ek gesê het!” Die twee konings het toe met hulle leërs na Ramot in Gilead vertrek. Agab het vir Josafat gesê: “As die geveg begin, gaan ek my vermom sodat niemand my kan herken nie. Hou jy liewer jou koninklike klere aan.” Agab het hom toe vermom en toe die geveg begin, was hulle daar. Die koning van Aram, teen wie hulle geveg het, het vir sy offisiere wat strydwabevelvoerders was, gesê: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie!” Toe hulle vir Josafat sien, het die offisiere geskree: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het hom aangeval. Josafat het egter geskree en die Here gevra om hom te red. God het toe ingegryp en die aanvallers van hom af laat padgee. Die offisiere het intussen besef dat hy nie Israel se koning is nie en die agtervolging gestaak. Een van die gewone Aramese soldate het sy boog gespan en ’n pyl weggeskiet sonder om na enigiets spesifieks te mik. Die pyl het vir Agab getref en tussen die plate van sy pantser ingesteek. Agab het besef wat gebeur het en vir sy strydwadrywer gesê: “Swaai om, kry my uit die geveg uit, want ek is gewond.” Die geveg het egter al hoe hewiger geword en die hele dag lank aangehou. Agab het aan die kant van sy strydwa vasgehou en so regop gebly om teen die Arameërs te veg, maar teen sononder is hy dood. Koning Josafat van Juda het veilig by sy huis in Jerusalem aangekom. Die siener Jehu, Ganani se seun, het uitgegaan om hom te ontmoet. Hy het vir koning Josafat gesê: “Gaan help jy nou slegte mense en maak jy vriende met die vyande van die Here? Dit het die Here baie kwaad gemaak. Maar jy het darem goeie dinge ook gedoen, soos toe jy die pale ter ere van die afgod Asjera uitgeroei het en toe jy begin het om net te doen wat God wil hê.” Josafat het in Jerusalem gewoon, maar hy het weer uitgegaan en sy mense besoek. Hy het van Berseba af tot in die Efraimsberge deur die land rondgegaan. Josafat het die mense opgeroep om na die Here, die God van hulle vaders, terug te kom. Hy het dwarsdeur die land in die versterkte stede van Juda regters aangestel. Hy het vir hulle gesê: “Wees versigtig in julle werk. Onthou dat julle as regters nie mense tevrede moet stel nie, maar vir die Here. Hy sal julle help wanneer julle uitspraak lewer. Wees versigtig vir die Here en dink mooi wat julle doen, want die Here verdra geen onreg, partydigheid of omkopery nie.” In Jerusalem het Josafat ook sekere Leviete, priesters en familiehoofde van Israel as regters aangestel. Hulle was verantwoordelik vir die toepassing van die wet van die Here en ook vir siviele hofsake tussen mense in die land. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet altyd só optree dat julle die Here tevrede stel. Doen julle werk getrou en met toewyding. As daar ’n saak van iemand uit die platteland voor julle kom en dit gaan oor ’n moord of ’n ander oortreding van een van God se instruksies, bevele, wette of reëls, moet julle hulle waarsku om nie sonde te doen nie. Dit sal keer dat die Here vir julle en vir hulle kwaad word. As julle dit só doen, sal julle nie skuldig wees nie. Die hoogste gesag in alle godsdienstige sake is die hoëpriester Amarja. Die hoogste gesag in alle siviele sake is Sebadja, Ismael se seun wat leier is van die Judastam. Die Leviete sal julle help sorg dat die reg toegepas word. Staan sterk en doen julle werk goed. Mag die Here self sorg dat reg geskied!” Na ’n ruk het ’n klomp Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen Josafat oorlog kom maak. Die volgende boodskap het Josafat bereik: “Daar kom ’n groot leër aan om teen u te veg. Hulle kom van Edom se kant af, anderkant die Dooie See, en het reeds by Gaseson-Tamar (oftewel En-Gedi) aangekom.” Toe hy dit hoor, het Josafat geskrik en besluit om die Here te raadpleeg. Hy het beveel dat al die mense van Juda vir ’n dag lank niks mag eet nie. Hulle het toe uit al die stede en dorpe van Juda bymekaargekom om die Here te vra om hulle te help. Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie! God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie? U volk het hier kom bly en hierdie tempel vir U gebou. Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’ Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie. Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het. God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.” Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp. Die Here se Gees het toe deur een van die mans in die vergadering gepraat. Sy naam was Jagasiël, ’n Leviet. Sy voorouers was Sagaria, Benaja, Jeïel en Mattanja. Hulle was lede van die familiegroep van Asaf. Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk. Maak reg en trek môre teen hulle uit. Hulle sal met die opdraande van Sis se kant af kom en julle sal hulle kry net daar waar die kloof oopmaak na die Jeruëlwoestyn se kant toe. Julle sal nie eens hoef te veg nie! Neem net julle posisies in, dan sal julle kan sien hoe die Here die geveg vir julle wen. Inwoners van Juda en Jerusalem, die Here is aan julle kant. Moenie bang of skrikkerig wees nie. Gaan môre uit en gaan kyk self hoe die Here julle help.’” Koning Josafat het met sy gesig na die grond toe neergekniel. Al die mense van Juda en Jerusalem het sy voorbeeld gevolg en die Here begin aanbid. Die Leviete uit die Kehat- en die Koraggroep het toe opgestaan en die Here, Israel se God, baie hard begin prys. Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!” Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg. Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg. Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie. Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry. Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem. Daarna het die hele leër van Josafat teruggegaan Jerusalem toe. Hulle was baie bly omdat die Here vir hulle ’n oorwinning oor hulle vyande gegee het. Hulle het in Jerusalem ingekom en na die tempel toe gegaan, terwyl die harpe en liere gespeel het en die trompette geblaas is. Toe Israel se buurvolke hoor dat die Here self vir Israel teen hulle vyande geveg het, het hulle baie bang geword vir God. As gevolg daarvan het Josafat se koninkryk vrede beleef. God het vir hom vrede gegee met al sy buurlande. Josafat was 35 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, ’n dogter van Silgi. Hy het soos sy pa Asa regeer en dinge gedoen waarvan die Here gehou het, maar hy het nie die hoogtes waar die mense ander gode gedien het, vernietig nie. Die mense van Juda het ook nog nie vir God met alles in hulle gedien nie. Die res van Josafat se geskiedenis is in Die Herinneringe van Jehu, Ganani se seun opgeskryf. Dié boek is later opgeneem in Die Geskiedenisboek van die Konings van Israel. Later het Josafat ’n vennootskap met koning Ahasia van Israel aangegaan. Dit was ’n baie groot fout. Hulle het saamgewerk en in Esjon-Geber skepe gebou om Tarsis toe te vaar. Eliëser, Dodawa se seun uit Maresa, het die volgende profetiese woorde oor Josafat gesê: “Omdat jy saam met Ahasia gewerk het, sal die Here jou projek laat misluk.” Die skepe het toe vergaan en Tarsis nooit bereik nie. Na Josafat se dood is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het na hom koning geword. Joram se broers was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van Josafat. Hy het vir hulle silwer en goue en allerlei kosbare goed gegee, asook versterkte stede in Juda. Joram het koning geword omdat hy die oudste seun was. Toe Joram sy koningskap stewig gevestig het, het hy sy broers en sekere leiers van Israel vermoor. Joram was 32 toe hy koning geword het. Hy het vir agt jaar in Jerusalem regeer. Joram het geleef soos die meeste konings van Israel voor hom. Hy was net so sleg soos koning Agab, want hy het met een van Agab se dogters getrou. Hy het dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was. Maar die Here het gelukkig nie ’n einde gemaak aan die koningshuis van Dawid nie omdat Hy vir Dawid beloof het dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon sou sit. In Joram se tyd het die Edomiete van Juda af weggebreek en hulle eie koning aangestel. Joram het die Edomiete met sy hele leër en al sy strydwaens agternagesit om sy gesag oor hulle te herstel. Die Edomiete het hom en sy strydwaens egter omsingel, maar hy het in die nag in die donker weggekom. Van toe af was die Edomiete onafhanklik van Juda. Joram het selfs in die heuwelland van Juda hoogtes vir afgode gebou en die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien. Die profeet Elia het vir Joram ’n brief geskryf. Hier is vir jou ’n boodskap van die Here, die God van Dawid, jou voorvader. Hy sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa, Josafat, en jou oupa, Asa, gevolg nie. Jy het net so sleg soos al die ander konings van Israel geword. Jy het die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien, net soos Agab met die mense van Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers doodgemaak. Hulle was beter mense as jy. Nou gaan die Here jou straf, maar nie net vir jou nie. Ook jou mense, jou kinders en jou vroue gaan erg getref word. Jy gaan baie ernstig siek word. Die siekte sal chronies wees, totdat jou ingewande later sal uitkom. Die Here het toe gesorg dat die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, vyande van Joram word. Hulle het Juda aangeval en die paleis beroof van alles wat waardevol was. Hulle het selfs sy vroue en kinders weggevat. Net een seun, Ahasia, die jongste, het agtergebly. Daarna het die Here Joram met ’n chroniese siekte getref. Niemand kon hom gesond maak nie. Na twee jaar was hy so siek dat sy ingewande uitgekom het. Hy het baie pyn gehad en is uiteindelik dood. Sy mense het nie soos gewoonlik by die dood van konings vir hom ’n begrafnisvuur aangesteek nie. Joram was 32 toe hy koning geword het en het vir agt jaar regeer. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in een van die koninklike grafte nie. Die mense van Jerusalem het vir Ahasia, Joram se jongste seun, koning gemaak. Hy was al wat oor was nadat die bende wat hulle saam met die Arabiere aangeval het, al die ouer kinders doodgemaak het. Ahasia, koning Joram se seun, het toe koning geword. Hy was 22 en hy het net ’n jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n dogter van Omri. Hy het ook soos die ander konings van Israel opgetree, want sy ma, Atalia, was sy raadgewer oor godsdienstige sake. Hy het dinge gedoen wat vir die Here totaal en al onaanvaarbaar was. Hy was net soos Agab se familie. Na sy pa se dood was hulle sy raadgewers. Dit het tot sy ondergang gelei. Hulle het aanbeveel dat hy saam met Joram teen die Arameërs moes gaan veg. Joram was Agab se seun en koning van Israel. Hulle twee het toe by Ramot in Gilead teen Gasael, die Aramese koning, oorlog gaan maak. Die Arameërs het Joram in die geveg gewond. Joram het na Jisreël toe gegaan om van sy wonde te herstel. Ahasia het hom toe daar in Jisreël kom besoek. Die besoek was egter ’n groot fout. Die Here het besluit om Ahasia te straf. Dit het só gebeur: Terwyl Ahasia by Joram gekuier het, het hulle twee uitgegaan om vir Jehu, Nimsi se seun, te ontmoet. Jehu is pas tevore deur die Here aangewys om Agab se koningshuis uit te wis. Terwyl Jehu besig was om Agab se hele familie dood te maak, het hy op ’n groep familielede en amptenare van Ahasia afgekom. Hy het hulle ook doodgemaak. Toe het hy na Ahasia begin soek. Van sy mense het vir Ahasia gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom gevang en vir Jehu gebring. Jehu het hom toe ook doodgemaak. Ahasia is soos ’n koning begrawe, want die mense het gesê: “Hy was darem Josafat se kleinseun en Josafat het alles in sy vermoë gedoen om die Here te dien.” Na Ahasia se dood was daar niemand wat hom as koning kon opvolg nie. Toe Atalia hoor dat haar seun, Ahasia, dood is, het sy besluit om ook die res van die koningsgesin uit te wis. Ahasia se suster, Jehoseba, het egter Atalia se planne in die wiele gery. Sy was ’n dogter van koning Joram van Juda en sy het Ahasia se babaseuntjie, Joas, tussen die ander kinders weggevat, want sy het besef dat Atalia die kinders almal sou doodmaak. Sy het hom en sy verpleegster in ’n ander kamer gaan wegsteek. Op dié manier het Jehoseba, die vrou van die priester Jojada, Joas se lewe gered. Hulle het hom ses jaar lank in die tempel weggesteek terwyl Atalia Juda regeer het. In Atalia se sewende regeringsjaar het Jojada ’n paar militêre offisiere in sy vertroue geneem. Hy het ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle was Asarja, Jerogam se seun; Ismael, Joganan se seun; Asarja, Obed se seun; Maäseja, Adaja se seun en Elisafat, Sikri se seun. Hulle het deur die hele Juda gereis en die Leviete in die Judese stede en die Israelitiese familiehoofde opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom. Hulle almal het toe in die tempel van God vergader en ’n ooreenkoms met Joas, die jong koning, aangegaan. Jojada het vir hulle gesê: “Dis tyd dat die koning se seun ons regeer. Die Here het belowe dat ’n seun uit Dawid se nageslag altyd ons koning sal wees. Hier is die plan: van die priesters en Leviete wat op die sabbat aan diens kom, moet ’n derde die ingange bewaak, ’n derde die paleis en ’n derde die Fondamentpoort. Al die ander mense moet in die tempel se voorhof bymekaarkom. Niemand behalwe die priesters en Leviete wat in die tempel moet gaan werk, mag in die tempel ingaan nie. Net die mense wat in die tempel moet gaan werk, mag daar ingaan. Al die ander moet buite bly. Julle Leviete moet ’n lyfwag rondom die koning vorm. Hou julle wapens gereed en maak enigiemand dood wat ongemagtig in die tempel inkom. Bly die hele tyd by die koning en pas hom op.” Die Leviete en die ander Judeërs het Jojada se bevele presies uitgevoer. Elke leier het ’n dubbele diensgroep gehad, naamlik dié wat aan diens gekom het, maar ook dié wie se diensbeurt verby was, want Jojada het hulle nie laat huis toe gaan na hulle klaar gewerk het nie. Jojada het toe vir die offisiere van die spiese en skilde gegee wat Dawid vroeër in die tempel laat stoor het. Hy het die gewapende wagte rondom die koning opgestel. Hulle het ’n ry gevorm van die suidelike hoek van die tempel tot by die noordelike hoek en reg rondom die altaar. Jojada en sy seuns het toe vir Joas, die koning se seun, uitgebring en hom koning gemaak. Hulle het ’n kroon op sy kop gesit, die koninklike volmag in sy hand gesit en hom gesalf deur olie op hom uit te giet. Daarna het almal geskree: “Lank lewe die koning!” Atalia het die lawaai by die tempel gehoor van die mense wat die koning toejuig en uitgegaan om te kyk wat daar gebeur. Sy sien toe dat die koning op sy koninklike verhoog by die ingang van die tempel staan. Die militêre offisiere en die trompetblasers het langs hom gestaan. Terwyl die mense uitbundig juig en trompette blaas, het die sangers musiek gemaak en lofliedere gesing. Atalia het geweet wat dit beteken. Sy het ontsteld haar klere geskeur en geskree: “Verraad! Verraad!” Jojada het vir die offisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg. Enigiemand wat aan haar kant is, moet julle doodmaak. Onthou net, julle mag haar nie in die tempel van die Here doodmaak nie!” Hulle het haar toe gegryp en weggevat. Toe hulle by die Perdepoort van die paleis kom, het hulle haar daar doodgemaak. Jojada het daarna ’n ooreenkoms met die volk en die koning gesluit dat hulle almal saam die Here se volk sou wees. Daarna het hulle almal na die Baältempel toe gegaan. Hulle het die tempel en die altare afgebreek en die afgodsbeelde stukkend geslaan. Toe maak hulle vir Mattan reg voor die altare dood. Hy was Baäl se priester. Jojada het toe die tempeldiens in ere herstel: hy het weer die Leviete en priesters aangestel om toesig oor die tempel te hou, soos Dawid bepaal het. Hy het gesê dat hulle weer die brandoffers vir die Here moes bring, soos die wet van Moses voorskryf, en dat hulle dit met vreugde en sang moes doen, soos Dawid gesê het. Hy het wagte by die ingange van die tempel geplaas om te sorg dat mense wat nie daar mag ingaan nie, buite bly. Daarna het die militêre offisiere, die hoofde van families, ander leiers en die hele volk die koning uit die tempel na die paleis toe begelei. Hulle het deur die boonste ingang van die paleis gegaan en die koning op die troon laat sit. Al die mense was bly en die hele stad was rustig nadat Atalia doodgemaak is. Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba. Joas se optrede het die Here tevrede gestel so lank as wat Jojada gelewe het. Jojada het vir Joas twee vroue uitgesoek en hulle het ’n gesin met seuns en dogters gehad. ’n Ruk later het Joas besluit om die tempel van die Here op te knap. Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en gesê: “Gaan na die stede en dorpe van Juda toe. Roep al die Israeliete op om hulle jaarlikse bydraes te gee sodat ons die tempel kan opknap. Maak gou! Ek beskou dit as ’n dringende saak.” Die Leviete het getalm en nie dadelik daaraan begin werk nie. Joas het toe met Jojada, die hoëpriester, geraas: “Waarom het u nie gesorg dat die Leviete die tempelbelasting van die mense in Juda en Jerusalem gaan insamel nie? Moses het die belasting al in die woestyn ingestel om die tent waar die Here aanbid is te kon onderhou!” Oor die jare het Atalia en haar mense die Here se tempel van sy spesiale voorwerpe beroof. Hulle het selfs die tempelbelasting gebruik om die Baäls te dien. Joas het toe opdrag gegee dat hulle ’n kis moes maak. Die kis is by die ingang van die tempel neergesit. Hulle het toe al die mense in Juda en Jerusalem opgeroep om hulle belasting in die kis te kom gooi. Hulle is daaraan herinner dat Moses, God se dienaar, dié belasting reeds in die woestyn van alle Israeliete geëis het. Die leiers en al die mense was bly hieroor. Hulle het hulle bydraes gebring en die kis volgemaak. Elke keer as die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Die staatsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester het die kis dan kom leegmaak en die geld getel. Daarna is die kis teruggevat na sy plek toe. Dit het elke dag so aangehou en ’n groot bedrag geld is uiteindelik ingesamel. Koning Joas en Jojada het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te herstel. Die kontrakteurs het klipkappers en skrynwerkers aangestel om die herstelwerk aan die tempel te doen. Hulle het ook metaalsmede aangestel om yster- en bronsvoorwerpe vir die tempel te maak. Die kontrakteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die werk het vinnig gevorder en die tempel is tot sy oorspronklike glorie herstel. Toe hulle klaar was, het die kontrakteurs die geld wat oorgebly het, vir Joas en Jojada teruggebring. Dit is gebruik om ’n klomp spesiale voorwerpe vir die tempel te laat maak. Die voorwerpe is in die erediens en die offerdiens gebruik: panne en gereedskap van goud en silwer. So lank as wat Jojada die priester geleef het, is daar gereeld brandoffers in die tempel van die Here gebring. Jojada het baie oud geword en is uiteindelik in die ouderdom van 130 oorlede. Hy is tussen die konings in die Dawidstad begrawe, want hy het vir Israel, vir God en vir die tempel baie beteken. Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg. Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem. Hy het profete gestuur om vir hulle te sê om hulle tot Hom te bekeer, maar hulle wou nie luister nie. Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.” Die leiers het toe teen Sagaria saamgesweer. Op koning Joas se bevel het hulle hom in die voorhof van die Here se tempel met klippe doodgegooi. Sonder om terug te dink aan Jojada se lojaliteit aan hom, het Joas vir Sagaria, Jojada se seun, laat doodmaak. Sagaria se laaste woorde was: “Mag die Here sien wat hulle doen en hulle daarvoor straf!” Teen die einde van die jaar het die Arameërs Joas aangeval. Hulle het Juda en Jerusalem ingeval en al die leiers doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, na hulle koning in Damaskus teruggestuur. Die Aramese leër was baie kleiner as die Judeërs s’n, maar die Here het die Arameërs gehelp. Juda het die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Daarom het Hy hulle die oorlog laat verloor. So is Joas gestraf vir sy sondes. Toe die Arameërs terugtrek, het hulle Joas swaar gewond agtergelaat. Joas se eie amptenare het toe teen hom saamgesweer om hom terug te betaal vir Sagaria se dood. Hulle het Joas in sy bed vermoor. Joas is in die Dawidstad begrawe, maar nie in die koningsgrafte nie. Sy moordenaars was Sabad, Simat die Ammoniet se seun en Josabad, Somer die Moabiet se seun. Oor sy seuns, die swaar belasting wat hy aan ander konings moes betaal en sy herstelwerk aan die tempel van God, kan ’n mens meer lees in Die Kommentaar op die Koningsboek. Sy seun Amasia het hom opgevolg. Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem. Die Here was tevrede met hom, al het hy Hom halfhartig gedien. Toe hy sy koningskap goed gevestig het, het hy die amptenare doodgemaak wat vir sy pa se dood verantwoordelik was. Maar hy het nie hulle kinders doodgemaak nie. Dit was uit gehoorsaamheid aan die Here se reël wat Moses neergeskryf het en wat lui: “Ouers kan nie oor hulle kinders se optrede of kinders oor hulle ouers s’n doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde veroordeel word.” Amasia het Juda en Benjamin se leër opgeroep. Hy het hulle in groter en kleiner afdelings laat aantree. Die soldate was almal ouer as twintig en vaardig met spies en skild. Daar was 300 000 goeie soldate wat op kommando kon vertrek. Hy het ’n verdere 100 000 soldate teen omtrent drie en ’n half ton silwer van Israel gehuur. ’n Profeet van God het met Amasia kom praat: “O Koning, u moenie die soldate van Israel saamvat op u veldtog nie. Die Here is nie lojaal aan Israel, aan daardie spul Efraimiete nie! Gaan alleen, moenie saam met hulle gaan veg nie, want die Here sal u laat struikel voor die vyand. Onthou, die Here kan ’n mens óf help, óf jou laat struikel.” Amasia het hom geantwoord: “Wat stel jy dan voor moet ek doen met die klomp silwer wat ek klaar betaal het om die Israeliete te huur?” “Die Here kan u tog baie meer as dit gee!” het die man van God geantwoord. Amasia het die huursoldate uit Efraim toe ontslaan en hulle huis toe gestuur. Hulle was baie ontevrede oor Juda se optrede en het woedend huis toe gegaan. Amasia het sy leër toe uitgelei en 10 000 soldate van Seïr in die Soutdal verslaan. Hulle het ’n verdere 10 000 gevange geneem. Dié groep is na ’n krans toe geneem en bo van die krans af gegooi. Hulle het hulle almal te pletter geval. Die Israelitiese soldate wat Amasia weggestuur het, het intussen in Juda amok gemaak. Hulle het op ’n plundertog deur Juda gegaan en ’n klomp dorpe tussen Samaria en Bet-Goron aangeval. Hulle het sowat 3 000 mense doodgemaak en ’n groot hoeveelheid buit vir hulle gevat. Na sy suksesvolle veldtog teen die Edomiete het Amasia die gode saamgebring wat hy van die vyand afgeneem het. Hy het hulle vir hom opgestel, hom voor hulle neergebuig en hulle met offers vereer. Daaroor het die Here baie kwaad geword vir Amasia. Hy het ’n profeet na hom toe gestuur wat vir Amasia gesê het: “Hoe vereer u dan nou ’n spul gode wat nie eers hulle eie volk teen u kon beskerm nie?” Hy was nog besig om te praat toe Amasia hom skerp in die rede val: “Het ons jou dalk as koninklike raadgewer aangestel? Bly stil, voordat ek jou sommer hier op die plek doodmaak!” Die profeet het toe ’n laaste woord ingekry: “Wat ek weet, is dat God besluit het om u te vernietig oor wat u aangevang het en omdat u nie na my raad wou luister nie.” Nadat hy met sy raadgewers gepraat het, het Amasia ’n boodskap na koning Joas van Israel, Joahas se seun en Jehu se kleinseun, gestuur. Hy het gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg!” Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?” Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak. Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem toe gevat. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort. Hy het al die goud en silwer gevat wat hy kon kry, asook die waardevolle goed in die tempel wat deur Obed-Edom opgepas is en die goed in die paleis ook. Hy het dit alles, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem. Koning Amasia van Juda het ná koning Joas van Israel se dood nog vyftien jaar lank in Jerusalem regeer. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda. Sedert die tyd dat Amasia ongehoorsaam geword het aan die Here, is daar ’n komplot in Jerusalem teen hom gesmee. Hy het Lagis toe gevlug. Die samesweerders het egter moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem en hy is in sy familiegraf in die Dawidstad begrawe. Die mense van Juda het toe Amasia se seun Ussia, wat maar sestien jaar oud was, koning gemaak in sy plek. Hy het Elat herbou en dit weer onder Juda se beheer geplaas. Ussia was sestien toe hy koning geword het. Hy het 52 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, van Jerusalem. Die Here was tevrede met wat Ussia gedoen het, net soos met sy pa Amasia. Sagaria het vir Ussia baie van God geleer. So lank as wat Ussia die Here gedien het, het God aan hom sukses gegee. Hy het teen die Filistyne gaan oorlog maak en die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en die res van Filistea gebou. God het hom nie net in sy oorloë teen die Filistyne gehelp nie, maar ook toe hy teen die Arabiere van Gur-Baäl en teen die Meüniete geveg het. Selfs die Ammoniete moes aan hom belasting betaal. Hy was later tot in Egipte bekend, want hy was teen hierdie tyd ’n baie magtige koning. Ussia het torings in Jerusalem gebou by die Hoekpoort, die Valleipoort en by die hoek in die muur. Hy het die torings soos forte versterk. Hy het ook forte in die woestyn gebou en baie waterputte uitgekap. Dit was nodig omdat hy groot kuddes vee in die heuwelland van Juda en op die vlaktes gehad het. Hy was lief vir boerdery en het baie mense gehad wat op sy plase en wingerde teen die heuwels en in die vrugbare valleie gewerk het. Ussia se leër was goed georganiseerd en goed opgelei. Hulle was reg om enige tyd oorlog te maak, want hulle is in afdelings ingedeel deur die leërsekretaris, Jeïel, en die stafoffisier Maäseja. Hulle twee het onder die gesag gestaan van Ganaja, ’n amptenaar van die koning. Die afdelings geoefende soldate het onder bevel van 2 600 familiehoofde gestaan. Die leër het uit 307 500 uitgesoekte soldate bestaan. Die koning kon op hulle reken wanneer hy teen enige vyand moes veg. Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe. Hy het ook goeie veiligheidsraamwerke gehad wat op die torings en die hoeke van Jerusalem opgerig is. Van daar af kon hulle pyle afskiet en groot klippe op aanvallers afgooi. Ussia het wyd en syd bekend geword. Deur God se goedheid het hy baie magtig geword. Toe Ussia so magtig geword het, was hy so vol van homself dat dit tot sy val gelei het. Hy het arrogant teenoor die Here sy God opgetree. Dit het gebeur toe hy op ’n keer in die tempel van die Here ingegaan het om sommer self wierook op die altaar te gaan brand. Die priester Asarja en 80 dapper priesters het hom die tempel in gevolg. Hulle het koning Ussia gekonfronteer en vir hom gesê: “Koning Ussia, u mag dit nie doen nie. Slegs priesters uit die Aäronfamilie mag wierook vir die Here brand. Gaan dadelik uit die heiligdom uit. U het ’n groot sonde gedoen. Die Here hou niks hiervan nie.” Ussia het reeds met ’n wierookpan in sy hand gestaan, reg om die wierook te offer, toe die priesters hom aangespreek het. Hy was woedend oor wat hulle vir hom gesê het. Terwyl hy nog op hulle skree, het ’n velsiekte op sy voorkop uitgeslaan. Dit het daar in die tempel, reg langs die wierookaltaar, voor die oë van die priesters gebeur. Toe Asarja en die ander priesters dit sien en besef dat hy ’n velsiekte gekry het, het hulle hom vinnig uit die tempel uitgevat. Hy het vinnig daar padgegee, want die Here se straf het hom getref. Koning Ussia het die velsiekte gehad tot hy dood is. Hy het die res van sy lewe in afsondering deurgebring. Hy kon ook nooit weer na die tempel toe gaan nie. Sy seun Jotam het beheer oor die paleis oorgeneem. Hy het oor die mense van Juda regeer. Die res van Ussia se geskiedenis is deur die profeet Jesaja, Amos se seun, neergeskryf. Ussia is dood en hulle het hom in die veld naby die konings se grafte begrawe omdat hy die velsiekte gehad het. Sy seun Jotam het hom opgevolg. Jotam was 25 toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, ’n dogter van Sadok. Die Here was tevrede met wat Jotam gedoen het, soos dit met sy pa Ussia die geval was. Jotam het darem nie in die tempel van die Here ingegaan nie. Die volk het egter steeds aangehou om verkeerde dinge te doen. Jotam het die boonste poort van die tempel laat bou. Hy het heelwat bouwerk aan die Ofelmuur laat doen. Hy het ook dorpe in die heuwelland van Juda laat bou en forte en torings in die beboste gebiede. Jotam het ’n suksesvolle veldtog teen die Ammoniete gevoer en hulle oorwin. Hy het hulle in daardie jaar met omtrent drie en ’n halwe ton silwer, meer as 1 500 ton koring en amper net soveel gars belas. Die Ammoniete moes dié belasting nog vir twee jaar daarna ook aan hom betaal. Jotam het magtig geword omdat hy probeer doen het wat die Here sê. Die res van Jotam se geskiedenis, die oorloë wat hy gevoer het en die projekte wat hy aangepak het, is alles in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda opgeskryf. Hy was 25 toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Na sy dood is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg. Agas was twintig toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie so tevrede met wat Agas gedoen het as met Dawid nie. Hy het dieselfde sondes gedoen as die konings van Israel. Agas het onder andere beelde van die Baäls gemaak wat die mense moes aanbid; offers vir vreemde gode gebring in die Ben-Hinnomdal; sy seuns met vuur verbrand as offers aan die gode, net soos die heidene vroeër gedoen het, en diere geoffer en wierook gebrand op al die ander nasies se godsdienstige plekke. Daarom het die Here sy God toegelaat dat die koning van Aram hom verslaan. Hy het ’n hele klomp gevangenes na Damaskus toe weggevat. Die Here het ook toegelaat dat Israel se leër Agas s’n verpletterend verslaan. Die leër van koning Peka van Israel, Remalia se seun, het op één dag 120 000 van Juda se uitsoeksoldate doodgemaak. Dit het gebeur omdat hulle nie meer gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Sikri, ’n held uit Efraim, het drie baie hoë amptenare van Juda doodgemaak. Hulle was Maäseja, een van die koning se seuns, Asrikam, die paleisbevelvoerder en Elkana, die koning se tweede-in-bevel. Die Israeliete het 200 000 Judeërs gevange geneem: vroue, seuns en dogters, almal familie van hulle. Hulle het ook die land geplunder en baie goed gevat. Hulle het al die goed en die gevangenes na Samaria toe weggevat. Oded was ’n boodskapper van die Here. Toe die leër van Israel na Samaria toe op pad was, het hy uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda. Daarom het Hy toegelaat dat julle hulle so vernederend kon verslaan. Maar julle het die moord en doodslag te ver gevoer. Dit skree ten hemele. Nou beplan julle om nog verder te gaan en om die vroue en kinders van Juda en Jerusalem wat julle gevang het, julle slawe te maak. Het julle nie self ook ernstige sondes teen die Here gedoen nie? Luister na wat ek vir julle sê: laat die gevangenes vry, want hulle is familie van julle. Die Here is baie kwaad vir julle!” ’n Klompie leiers van Efraim het met die profeet saamgestem. Hulle was Asarja, Joganan se seun, Berekja, Mesillemot se seun, Hiskia, Sallu se seun en Amasa, Gadlai se seun. Hulle het vir die soldate gesê: “Julle moet nie eens daaraan dink om die gevangenes hierheen te bring nie! Ons kan dit nie bekostig om nog meer sonde en skuld te hê nie. Ons skuld is al klaar baie groot. En die Here se woede dreig om enige oomblik teen ons los te bars!” Die soldate het toe die gevangenes daar voor die leiers en almal wat daar bymekaar was, vrygelaat en die goed wat hulle gevat het, gelos. ’n Aantal mans is aangewys om vir die gevangenes te sorg. Uit die buit wat die soldate gevat het, het hulle vir die mense wat kaal was, klere gegee. Hulle het klere en sandale uitgedeel en vir almal kos en iets te drinke aangebied. Hulle het die beseerdes se wonde met olie versorg. Daarna het hulle dié wat te swak was, op donkies laat ry en almal teruggeneem na Jerigo, die Palmstad, en die gevangenes daar aan hulle broers terugbesorg. Daarna het hulle self teruggegaan Samaria toe. Dit was in dié tyd dat Agas die koning van Assirië gevra het om hom te kom help. Die Edomiete het Juda intussen weer aangeval en verslaan. Hulle het baie gevangenes weggevat. Die Filistyne het ’n strooptog uitgevoer op die dorpe in Juda se lae heuwels en in die suide van die land. Hulle het die volgende plekke vir hulleself gevat en daar gaan bly: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko en die dorpe in die omgewing daarvan, Timna en die dorpe in die omgewing, Gimso en die dorpe in die omgewing. Al die slegte dinge het met Juda gebeur omdat die Here koning Agas van Juda wou straf. Hy het immers sy mense aangemoedig om sonde te doen en hy self was heeltemal ontrou aan die Here. Toe Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, wel daar opdaag, het hy koning Agas glad nie gehelp nie. Agas het al die waardevolle voorwerpe uit die Here se tempel, die paleis en sy amptenare se huise gevat en dit vir die koning van Assirië gestuur. Maar dit het niks gehelp nie. Juis toe hy baie swaargekry het, het koning Agas nóg ongehoorsamer aan die Here geword. Hy het offers gebring vir die gode van Damaskus. Hy het so daaroor gedink: “Dié gode het die Arameërs gehelp toe hulle teen my geveg het. Miskien sal hulle my ook help as ek hulle nou vereer.” Maar dit het nie so gebeur nie. Hulle het net tot sy ondergang gelei. Die koning het die gereedskap wat in die Here se tempel gebruik is, gevat en dit in stukkies gebreek. Toe het hy die tempel se deure toegesluit en sy eie altare op elke hoek in Jerusalem gebou. Hy het in elke dorp in Juda heiligdomme gebou om vir vreemde gode offers te bring. Op dié manier het hy die Here verskriklik kwaad gemaak. Die res van Agas se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. Na sy dood het hulle hom in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg. Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abia, ’n dogter van Sagaria. Hy het die Here gedien, net soos Dawid. In die eerste maand van sy eerste regeringsjaar het Hiskia die tempel laat oopsluit en die deure reggemaak. Hy het die priesters en Leviete op die plein oos van die tempel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Leviete, luister na my! Maak julleself rein en maak dan die tempel van die Here, die God van julle voorouers, baie goed skoon. Haal al die vieslike goed uit die tempel uit en vat dit weg. Ons ouers was ongehoorsaam aan die Here. Hulle het slegte dinge gedoen wat vir Hom onaanvaarbaar was. Hulle het opgehou om die Here in sy tempel te dien. Hulle het die ingangsdeure van die tempel gesluit, die lampe doodgeblaas, opgehou om wierook te brand en glad nie meer offerdiere in die heiligdom van Israel se God geoffer nie. Daarom het die Here baie kwaad geword vir Juda se mense. Hy het ons tot spot onder al die nasies gemaak, soos julle self beleef. Dít is hoekom ons voorouers in oorloë doodgemaak is en waarom ons seuns, ons dogters en ons vroue gevangenes in ander lande is. Maar nou wil ek ’n ooreenkoms met die Here, die God van Israel, sluit. Ek wil hê Hy moet ophou kwaad wees vir ons. Begin dadelik werk, my seuns! Die Here het julle gekies om vir Hom te werk. Julle moet die erediens lei en tot sy eer wierook brand.” Die volgende Leviete het onmiddellik aan die werk gespring: Uit die Kehatfamilie: Magat, Amasai se seun en Joël, Asarja se seun; uit die Merarifamilie: Kis, Abdi se seun en Asarja, Jehallelel se seun; uit die Gersonfamilie: Joag, Sima se seun en Eden, Joag se seun; uit die Elisafanfamilie: Simri en Jeïel; uit die Asaffamilie: Sagaria en Mattanja; uit die Hemanfamilie: Jegiël en Simi; uit die Jedutungroep: Semaja en Ussiël. Hulle het al die ander Leviete bymekaargemaak. Daarna het hulle hulleself skoongemaak en toe die koning se opdrag uitgevoer: hulle het die tempel presies volgens die reëls van die Here skoongemaak. Die priesters het in die tempel ingegaan en alles skoongemaak. Hulle het die vuil goed uitgebring na die voorhof toe. Daar het die Leviete dit gevat en buite die stad in die Kidronvallei gaan weggooi. Die skoonmaakwerk het op die eerste dag van die eerste maand begin. Binne agt dae het hulle tot by die voorhof skoongemaak. Dit het nog agt dae gevat om die tempel self skoon te maak en na sestien dae was alles klaar. Hulle het vir koning Hiskia gesê: “Ons het die tempel klaar skoongemaak. Alles is weer op hulle plek: die altaar vir die brandoffers met al die gereedskap wat daar gebruik word, asook die tafel waarop die offerbrood neergesit word met al sy gereedskap. “Ons het ook al die gereedskap teruggekry wat koning Agas gevat het. Hy was ongehoorsaam aan die Here. Dit is alles weer op hulle plek voor die Here se altaar.” Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stad se leiers bymekaargemaak. Hulle het na die tempel toe gegaan. Hulle het sewe bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring om te slag. Dit was ’n offer vir die Here. Op hierdie manier wou hulle om verskoning vra vir die sondes van die koning se familie, en ook ter wille van die tempel en die mense van Juda. Priesters uit Aäron se nageslag het die diere op die Here se altaar geoffer. Hulle het toe die beeste geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi. Daarna het hulle dieselfde met die skaapramme en toe met die lammers gedoen. Die bokramme was bedoel om die sonde weg te neem. Daarom het die priesters die bokke tot voor die koning en die ander mense gebring wat saam met hom daar was. Hulle almal het hulle hande op die bokke gesit. Daarna het die priesters die bokke geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi om al Israel se sonde voor God weg te neem. Die koning het gesê dat hierdie brandoffers en die sondeoffers vir die hele Israel se sondes bedoel is. Toe het Hiskia die Leviete met hulle simbale, harpe en liere by die tempel laat aantree. Hy het dit gedoen presies volgens die Here se opdragte wat Dawid deur die siener Gad en die profeet Natan ontvang het. Die Leviete het nader gestaan met die musiekinstrumente wat Dawid laat maak het, en die priesters met trompette. Toe het Hiskia beveel dat die offer op die altaar verbrand moes word. Toe die offer begin, het die Leviete tot die Here se eer begin sing en die trompette geblaas. Dit is begelei deur musiek wat op die instrumente van Dawid, Israel se koning, gemaak is. Die hele vergadering het die Here vereer. Die sang en trompetspel het aangehou totdat die offers klaar was. Toe die brandoffer klaar was, het die koning en al die mense neergekniel en die Here vereer. Koning Hiskia en sy amptenare het die Leviete gevra om van die lofliedere van Dawid en die siener Asaf te sing. Hulle het dit met vreugde gedoen en toe het hulle die Here aanbid. Hiskia het gesê: “Nou is die wydingseremonie klaar. Bring nou weer julle diereoffers en julle dankoffers na die tempel toe.” Die mense het toe diere gebring om te eet, asook dankoffers. Dié wat bereid was, het diere gebring om as brandoffers te verbrand. Daar is toe 70 bulle, 100 ramme en 200 lammers as brandoffers vir die Here verbrand. Die heilige geskenke was 600 beeste en 3 000 stuks kleinvee. Die priesters was te min om al die brandoffers af te slag. Die Leviete het kom help tot al die werk gedoen was en totdat meer priesters hulleself vir die tempelwerk skoongemaak het. Daar was verskriklik baie brandoffers, drankoffers en die vet van die offerdiere wat geëet sou word, wat alles verbrand moes word. Op dié manier is die diens aan die Here by die tempel weer hervat. Hiskia en al die mense was bly oor alles wat God vir hulle gedoen het. Hy het gesorg dat alles by die tempel vinnig weer herstel is. Hiskia het boodskappers na almal in Israel en Juda gestuur en briewe geskryf vir die mense van Efraim en Manasse om hulle uit te nooi om almal saam die paasfees ter ere van die Here, die God van Israel, by die tempel in Jerusalem te kom vier. Hiskia, sy amptenare en al die belangrike mense in Jerusalem het besluit om die paasfees ’n maand later as gewoonlik te hou. Dit moes so gebeur omdat hulle die fees nie op sy gewone tyd kon hou nie. Die priesters was nie gereed daarvoor nie en al die mense was nog nie in Jerusalem toe die fees moes plaasvind nie. Die koning en al die mense het toe besluit om die paasfees uit te stel. Hulle het toe ’n amptelike brief deur die hele Israel uitgestuur, van Berseba in die suide tot by Dan in die noorde. Daarin het hulle almal uitgenooi Jerusalem toe om die paasfees van die Here, Israel se God, te kom vier. Op die koning se bevel is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe wat die volgende boodskap bevat het: Israeliete! Kom terug na die Here, die God van Abraham, Isak en Israel. Dan sal Hy terugkom na ons almal wat die aanvalle van die Assiriese konings vrygespring het. Moenie soos julle familie wees nie. Hulle was nie getrou aan die Here die God van hulle voorouers nie. Daarom het Hy hulle tot ’n bespotting gemaak onder die ander mense. Julle kan dit self sien. Moenie so hardkoppig soos hulle wees nie. Aanvaar die Here se aanbod. Kom na sy tempel wat Hy vir altyd uitgekies het en kom dien die Here, julle God, sodat Hy nie vir julle kwaad bly nie. As julle na die Here toe terugkom, sal die mense wat julle familie en kinders gevang het, hulle jammer kry. Hulle sal dan terugkom na hierdie land toe. Onthou, die Here julle God gee vir julle om. Hy loop oor van goedheid. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy julle nie langer verwerp nie. Die boodskappers het die brief van dorp tot dorp in Efraim en Manasse en so ver as Sebulon geneem, maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot. Daar was egter wel mense uit Aser, Manasse en Sebulon wat nederig genoeg was om Jerusalem toe te kom. In Jerusalem het die Here eensgesindheid onder al die mense bewerk. Hulle wou almal graag doen wat die koning en leiers beveel het. Dit was presies volgens die Here se woord. ’n Baie groot klomp mense het toe in die tweede maand vir die paasfees en die fees van die ongesuurde brood in Jerusalem bymekaargekom. Hulle het aan die werk gespring en al die heidense altare in Jerusalem afgebreek. Hulle het selfs die wierookaltare gevat en dit in die Kidronvallei gaan weggooi. Op die regte dag in die tweede maand, ’n maand later as gewoonlik, het die mense die paaslammers geslag. Toe het die priesters en die Leviete skaam geword, hulleself reg voorberei om in die Here se diens te staan en brandoffers by die Here se tempel gaan verbrand. Hulle het op die plekke gaan staan wat hulle s’n was volgens die reëls in die wet van Moses. Die Leviete het die bloed van die offer na die priesters toe gebring en hulle het dit teen die altaar uitgegooi. Omdat baie mense hulleself nie reg voorberei het vir die fees nie, moes die Leviete al hulle paaslammers vir hulle slag. Die Leviete moes toe die diere aan die Here toewy. Dit was nodig omdat baie mense nog nie gereed was vir die fees nie. Hulle het veral uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon gekom, waar die paasfees nie op die voorgeskrewe manier gevier word nie. Maar koning Hiskia het vir hulle gebid en hulle kon ook die paasete eet, al was dit teen die letter van die wet van God. Hiskia het gebid: “Mag die Here wat goed is, die mense vergewe wat besluit het om Hom te volg, selfs al is hulle nie reg voorberei vir die viering van die fees nie!” Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die mense vir die fees aanvaar. Die mense van Israel wat in Jerusalem was, het die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank met groot vreugde gevier. Die Leviete en die priesters het elke dag met musiekinstrumente vir die Here gesing. Hiskia het die Leviete aangemoedig wat goeie insig in die diens van die Here getoon het. So het die fees vir sewe dae aangehou. Vredesoffers is gebring en die mense het hulle sonde teenoor die Here, die God van hulle voorouers, erken. Die hele vergadering het toe besluit om die fees met sewe dae te verleng. Hulle het nog ’n week lank met vreugde feesgevier. Koning Hiskia het vir die mense 1 000 bulle en 7 000 stuks kleinvee gegee en sy amptenare het nog 1 000 bulle en 10 000 stuks kleinvee gegee. Intussen het ’n groot aantal priesters hulleself ook gereedgemaak vir hulle diens. Die hele vergadering van Juda was baie bly. Dit het die priesters, Leviete en al die mense wat van die land van Israel af gekom het, en almal wat in Juda gewoon het, ingesluit. Daar was groot vreugde in die stad, want Jerusalem het nie sedert die dae van Salomo só feesgevier nie. Die Levitiese priesters het opgestaan en die mense geseën. Uit sy heilige woonplek in die hemel het God hulle gebede verhoor. Toe die fees verby was, het die Israeliete wat die fees bygewoon het, na al die dorpe in Juda, Benjamin, Efraim en Manasse gegaan. Hulle het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hulle het die heidene se heilige plekke en die altare afgebreek en toe het almal na hulle eie dorpe en huise toe teruggegaan. Hiskia het die priesters en die Leviete weer in diensgroepe ingedeel. Daar was groepe wat die brandoffers en die vredesoffers moes versorg, ander was verantwoordelik vir die erediens en die dank- en lofgesange vir die Here by die tempel. Volgens die Here se reëls het die koning self ook diere geskenk vir die oggend- en aandoffers. Hy het ook diere gegee vir die weeklikse sabbatsfeeste en die maandelikse nuwemaansfeeste en vir die jaarlikse feeste. Hy het ook vir die mense in Jerusalem opdrag gegee om die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en die Leviete af te staan sodat hulle voltyds vir die Here kon werk. Die mense het dadelik positief gereageer. Hulle het in oorvloed van die eerste oes van hulle graan, hulle nuwe wyn, olyfolie, heuning en ander landbouprodukte na die tempel toe gebring. Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gebly het, het ook bydraes gebring in die vorm van beeste en skape, asook spesiale geskenke wat hulle vir die Here hulle God gegee het. Hulle het dié bydraes in die derde maand begin insamel en teen die sewende maand was hulle klaar daarmee. Toe Hiskia en sy amptenare na die bydraes kom kyk, het hulle die Here en vir Israel geprys. Terwyl Hiskia die hope goed met die priesters en Leviete bespreek het, het Asarja, die hoëpriester uit Sadok se familie, vir hom gesê: “Sedert hulle begin het om die bydraes na die tempel van die Here te bring, het ons nog altyd genoeg gehad om te eet. Daar het nog altyd ’n hoeveelheid oorgebly, want die Here was goed vir sy mense.” Hiskia het beveel dat hulle stoorkamers by die tempel moes inrig. Die Leviet Kenanja moes oor al die geskenke toesig hou. Simi was tweede in bevel. Die amptenare wat vir Kenanja en Simi gewerk het, was Jegiël, Asasja, Nagat, Aseal, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. Dit was koning Hiskia en die hoëpriester Asarja, wat die hoof van die tempel was, se reëlings. Die Leviet Kore seun van Jimna, wat die wag by die Oospoort was, moes toesig hou oor die geskenke aan God, asook oor die aanwending van al die bydraes vir die Here en oor die spesiale geskenke wat aan Hom gegee is. Sy helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle het die bydraes onder die priesterfamilies in hulle eie dorpe uitgedeel. Hulle het gesorg dat oud en jonk almal regverdig behandel word. Hulle het ook gesorg dat elke man wat daagliks inkom om sy werk by die Here se tempel te doen sy geskenke kry. Die priesters is volgens hulle familie in die register aangeteken, en van die Leviete is dié wat twintig jaar en ouer was volgens hulle diensgroepe en beurte aangeteken. Hulle hele gesin is ook in die register aangeteken, dit is die vroue, seuns en dogters van die hele tempelgemeenskap. Die priesters uit die familie van Aäron wat in die dorpe rondom die stede gewoon het, is ook voorsien van hulle deel van die tempelbydraes deur mense wat daarvoor aangestel is. Hulle moes ook sorg vir die Leviete wat in die familieregisters aangeteken was. Koning Hiskia se verspreiding van die tempelbydraes deur die hele Judea het die Here sy God tevrede gestel. Hiskia het baie moeite vir die tempel van God gedoen en het met oorgawe die Here se wet en opdragte probeer uitvoer. Daarom was hy baie suksesvol. Na hierdie optrede van Hiskia waarin hy sy lojaliteit aan die Here bewys het, het koning Sanherib van Assirië Juda aangeval. Hy het die versterkte stede met sy leër omsingel. Toe Hiskia besef dat Sanherib op pad was om Jerusalem aan te val, het hy ’n vergadering met sy amptenare en militêre raadgewers gehou. Hy wou al die waterfonteine buite die stad afseël en hulle het die gedagte ondersteun. ’n Groot klomp werkers is toe opgeroep om die fonteine te verseël en die stroom water te blokkeer wat deur die land vloei. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriese konings nou hier kom en baie water hê?” Hiskia het hard gewerk om Jerusalem te beveilig deur alle swak plekke in die muur te herbou en dit met torings te versterk en deur ’n tweede muur rondom die stad te bou. Hy het ook baie wapens en skilde laat maak. Daarna het hy bevelvoerders oor die soldate aangestel en hulle op die plein by die stadspoort laat vergader. Hy het hulle toegespreek: “Wees sterk en dapper! Moenie bang wees vir die Assiriese koning en sy groot leër nie. By ons is daar ’n sterker mag as by hom. Hy het net mense in sy leër, maar ons het die Here ons God aan ons kant. Hy help ons en veg saam met ons!” Die soldate het moed geskep uit koning Hiskia se woorde. Koning Sanherib van Assirië was besig om Lagis met al sy magte te beleër. Van daar af het hy boodskappers na Jerusalem toe gestuur om met koning Hiskia en al die Judeërs in Jerusalem te praat. Hulle boodskap was: “Luister wat sê koning Sanherib van Assirië: Waarom dink julle dat julle my aanval op Jerusalem sal kan oorleef? Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan. Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’ Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red? Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry? Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Ek herhaal, geen god kon tot dusver enige volk teen my of my voorgangers beskerm nie. Nog minder sal julle God julle teen my kan beskerm!” Die boodskappers het nog baie beledigings teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia uitgespreek. Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.” Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem. Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid. Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak. So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle. Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het. Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies. Hiskia het in dié tyd ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid. Sy gebed is verhoor en hy het gesond geword. Maar Hiskia het nie reg gemaak nadat die Here hierdie groot guns aan hom bewys het nie. Hy was vol van homself. Daarom het die Here kwaad geword vir hom en vir Juda en Jerusalem. Hiskia het toe erken dat hy hoogmoedig geword het en die inwoners van Jerusalem het hulleself verneder. Daarom het die Here se wraak hulle nie in Hiskia se tyd getref nie. Hiskia was baie ryk. Almal het groot respek vir hom gehad. Hy het skatkamers vir sy silwer, goud en juwele laat bou, ook vir speserye, skilde en ander waardevolle items. Daarby het hy stoorkamers vir sy deel van die graanoes, die nuwe wyn en olyfolie gebou. Hy het ook krale en stalle vir sy beeste en troppe kleinvee gebou. Hy het ook stede gebou en reusetroppe kleinvee en beeste besit. Die Here het hom baie ryk gemaak. Hiskia het die boonste oog van die Gihonfontein toegemaak en die water deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad gelei. Hy het baie goed gevaar met al die projekte wat hy aangepak het, maar toe ’n Babiloniese afvaardiging by hom kom om hom uit te vra oor die ongewone dinge wat in die land gebeur het, het die Here hom verlaat om hom te toets en vas te stel wat in sy hart aangaan. Die res van Hiskia se geskiedenis en sy toewyding aan die Here is in Die Visioen van die Profeet Jesaja, Amos se seun en in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. Na sy dood is Hiskia in die boonste deel van die koninklike begraafplaas begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het by sy dood aan hom eer betoon. Sy seun Manasse het hom opgevolg. Manasse was twaalf toe hy koning geword het. Hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was glad nie tevrede met wat Manasse gedoen het nie. Hy het dieselfde verskriklike sondes gedoen wat die mense wat voor die Israeliete in die land gebly het, altyd gedoen het. Hy het die heilige plekke waar die afgode gedien is en wat sy pa, Hiskia, afgebreek het, weer gebou; altare vir die Baäls gebou; stompe gemaak ter ere van die afgod Asjera; al die hemelgode gedien; selfs binne-in die Here se tempel altare vir ander gode gebou (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”); in albei portale van die tempel altare gebou om die hemelgode te vereer; sy seun in die Ben-Hinnomdal verbrand as ’n offer aan die afgode; en goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen. Manasse het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het. Hy het ’n afgodsbeeld wat hy laat maak het, binne-in die tempel laat opsit. Die Here het al jare tevore vir Dawid en Salomo gesê: “Ek kom bly vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete bly. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en die wet gehoorsaam wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat bly wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.” Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle geleer om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat voor die Israeliete in die land gebly het. Die Here het Manasse en sy mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie. Toe het die Here die Assiriese leërs gestuur en hulle het Manasse gevang. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met dik kettings vasgebind en hom na Babel toe gevat. Terwyl hy daar baie swaargekry het, het hy weer na die Here toe gekom. Hy het die God van sy voorouers nederig om verskoning gevra vir al sy sondes. Toe Manasse so gebid het, het die Here besluit om hom te help. Hy het hom na Jerusalem laat teruggaan en hy het weer die koning van Juda geword. Dit het Manasse laat besef dat die Here werklik God is. Manasse het toe die buitemuur van Jerusalem herbou. Hy het van ’n punt af, wes van die Gihonfontein in die Kidronvallei, verby die Vispoort tot by die Ofel die muur opgebou en baie hoër gemaak. Hy het ook militêre offisiere in die versterkte stede in Juda aangestel. Hy het ook die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel weggevat en die altare afgebreek wat hy vroeër op die tempelberg in Jerusalem gebou het. Hy het die rommel buite die stad weggegooi. Daarna het Manasse die Here se altaar herstel en offers vir die Here gebring om vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Hy het vir die mense van Juda gesê dat hulle die Here, Israel se God, moes dien. Die mense het wel nog op die heilige plekke buite Jerusalem gaan offer, maar hulle het net vir die Here geoffer. Die res van Manasse se geskiedenis, hoe hy tot sy God gebid het en hoe die sieners hom namens die Here, Israel se God, aangespreek het, word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel. Die volgende sake word in Die Herinneringe van die Sieners beskryf: sy gebed; God se antwoord daarop; al die verkeerde dinge wat hy gedoen het; sy ongehoorsaamheid aan God; die plekke waar hy heilige plekke gebou het vir afgode en waar hy Asjerapale en die houtbeelde van die afgode neergesit het, nog voordat hy hom bekeer het. Ná Manasse se dood is hy by sy paleis begrawe. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat hy gedoen het nie, net soos die Here nie tevrede was met wat sy pa, Manasse, gedoen het nie. Amon het die houtbeelde van die afgode wat sy pa vroeër laat opsit het, vereer. Hy het hom glad nie aan die Here gesteur nie en hy het nie, soos sy pa Manasse, homself aan die Here se wil onderwerp nie. Trouens, Amon se sondes het net meer en meer geword. ’n Paar van sy amptenare het teen hom saamgesweer en hom in die paleis vermoor. Die mense het toe almal doodgemaak wat by sy moord betrokke was. Hulle het Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak. Josia was net agt jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer. Josia se optrede het die Here baie tevrede gestel. Hy het soos sy voorvader Dawid regeer, sy hele lewe lank. In Josia se agtste regeringsjaar, toe hy nog maar jonk was, het hy begin doen wat die God van sy voorvader Dawid graag wou hê. Toe hy twaalf jaar lank koning was, het hy Juda en Jerusalem begin skoonmaak van die heidene se heilige plekke, die Asjerapale en die hout- en metaalbeelde wat ter ere van ander gode opgerig is. Hy het seker gemaak dat die altare vir die Baäls afgebreek word en dat die wierookaltare wat bo-op hierdie altare was, stukkend gebreek word. Hy het die pale ter ere van die afgod Asjera en die hout- en metaalbeelde gebreek, tot poeier fyngemaak en dit oor die priesters, wat daar geoffer het, se grafte gegooi. Hy het hulle beendere uit die grafte gehaal en op die altare verbrand. Op hierdie manier het Josia Juda en Jerusalem heeltemal skoongemaak van al die afgode. Josia het dieselfde gedoen in die dorpe Manasse, Efraim en Simeon, tot so ver as Naftali. Op die plekke waar afgode gedien is, het hy die altare en die Asjerapale verwoes, die houtbeelde fyngekap en die wierookaltare in stukke gebreek. Hy het dit in die hele gebied van Israel gedoen. Daarna het hy teruggegaan Jerusalem toe. In Josia se agtiende regeringsjaar, terwyl hy besig was om die land en die tempel skoon te maak van al wat ’n afgodsbeeld is, het hy vir Safan, Asalja se seun, Maäseja, die stadsbevelvoerder, en Joag, Joahas se seun en die staatsekretaris, na die tempel van die Here sy God gestuur om dit reg te maak. Hulle het die geld wat die mense as bydraes na die tempel gebring het, vir die hoëpriester Gilkija gaan gee. Dit was geld wat die Leviete as deurwagte bymekaargemaak het. Hulle het dit uit Manasse, Efraim en die res wat van Israel oorgebly het, gekry. Dit is ook van die mense van Juda, Benjamin en Jerusalem gekry. Die geld is aan die kontrakteurs betaal wat moes sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moes die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk sou doen. Hulle het dit aan die skrynwerkers en bouers betaal wat gekapte bouklippe en hout vir dakkappe moes koop om die tempel te herstel, wat deur die vorige konings van Juda verniel is. Die manne het hulle werk deeglik gedoen. Die opsigters oor die werk was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. ’n Ander groep Leviete, wat vaardige musici was, is in beheer van die draers en die arbeiders met hulle verskillende soorte werk geplaas. Nog ander Leviete is gebruik as sekretarisse, klerke en poortwagte. Terwyl hulle die geld bymekaargemaak het wat die mense na die tempel van die Here gebring het, het Gilkija, die priester, die wetboek van die Here gekry. Dit is die wetboek wat die Here vir Moses gegee het. Gilkija het vir Safan, die sekretaris, gesê: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol dadelik na die koning gebring en verslag gedoen: “Almal vir wie u werk gegee het, is aan die gang. Hulle het die geld wat in die tempel was, bymekaargemaak en vir die kontrakteurs en werkers gegee om met die werk aan te gaan. Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die priester Gilkija het dié boekrol daar gevind en vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees. Nadat Josia gehoor het wat in die wetboek staan, was hy so ontsteld dat hy sy klere geskeur het. Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija, die priester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê: “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie gesteur aan die boek se inhoud nie. Die Here moet baie kwaad wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.” Hulle is toe na die profetes Gulda toe, wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was. Sy het hulle geantwoord: “Hier is ’n boodskap van die Here af vir julle koning. Gaan sê vir hom die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan Jerusalem en sy mense vernietig, net soos dit in die boek staan wat julle gelees het. Hulle het opgehou om My te eer en ander goed begin dien wat glad nie gode is nie. Ek is baie kwaad daaroor. My woede is soos ’n vuur wat nie meer geblus kan word nie.’” Sy het egter ook gesê: “Hier is ook ’n persoonlike boodskap van die Here af vir Josia. Die Here sê vir hom: ‘Ek het gesien hoe jy op die boodskap van die wetboek gereageer het, hoe ontsteld jy was toe jy sien watter oordeel die stad en sy mense gaan tref. Omdat jy jou voor My verneder het en jammer is oor alles, sal Ek sorg dat die oordeel jou nie tref nie. Jy sal gewoonweg sterf en in vrede begrawe word, sonder om die oordeel oor Jerusalem te beleef.’” Gilkija-hulle het die boodskap vir Josia gebring. Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, die belangrikes en die onbelangrikes, het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat in die tempel van die Here gekry is. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here in die wetboek vra. Hy het ook van al die mense van Juda en Jerusalem verwag om hulle aan die ooreenkoms te hou. Die hele volk het hulle aan hierdie ooreenkoms verbind. Josia het daarna al die goed wat vir die Here aanstootlik was uit Israel laat wegneem. Hy het elke Israeliet verplig om die Here hulle God te dien. Vir die res van sy lewe het hulle nie weer weggedwaal van God, die Here, nie. Josia het daarna die paasfees tot die eer van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslammers is op die veertiende dag van die eerste maand geslag. Hy het die priesters se take aan hulle toegewys en hulle aangemoedig om hulle plig by die tempel van die Here te doen. Hy het vir die Leviete, wat afgesonder was vir die Here en wat Israel geleer het hoe om die Here te dien, gesê: “Die ark met die ooreenkoms tussen die Here en sy volk is nou in die tempel wat Salomo gebou het. Terwyl julle dit nou nie meer heen en weer hoef te dra nie, moet julle die Here julle God en sy volk, Israel, steeds dien. Meld aan vir diens volgens julle diensgroepe soos koning Dawid dit laat opskryf het en volgens Salomo se voorskrifte. Gaan staan op die plekke in die heiligdom wat aan julle toegewys is. Help die mense vir wie julle verantwoordelik is, wanneer hulle hulle offers na die tempel bring. Slag die paaslammers, maak julleself dan skoon en berei die offer soos dit voorgeskryf word in die Here se wet wat Hy deur Moses gegee het.” Josia het vir die gewone mense wat die paasfees kom vier het skaap- en boklammers gegee om as offers te gebruik. Hy het uit sy eie kuddes 30 000 stuks kleinvee en 3 000 beeste aan die mense voorsien. Sy hoë amptenare het ook vrywillig bygedra, sodat die gewone mense, die priesters en die Leviete paasfees kon vier. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het 2 600 stuks kleinvee en 300 beeste as paasoffers vir die priesters gegee. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het 5 000 lammers en 500 beeste as paasoffers vir die Leviete geskenk. Alles was gereed vir die viering van die paasfees. Die priesters het op hulle plekke gestaan en die Leviete het in hulle afdelings aangetree soos die koning beveel het. Die Leviete het die paaslammers geslag. Hulle het die bloed vir die priesters gegee, wat dit teen die altaar uitgegooi het, terwyl die Leviete die lammers afgeslag en voorberei het. Hulle het die deel wat verbrand moes word, eenkant gesit om dit vir die gewone mense volgens hulle familiegroepe te gee. Hulle kon dit dan weer op die voorgeskrewe manier offer, soos die Here deur Moses beveel het. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen. Hulle het die paaslammers oor die kole gebraai soos dit voorgeskryf is en die ander gawes is in potte, ketels en panne gekook. Alles is so vinnig moontlik onder die gewone mense versprei, sodat hulle kon eet. Toe dit klaar was, het die Leviete ook vir hulleself en vir die priesters kos gemaak. Dit was nodig omdat die priesters uit die Aäronfamilie tot laat in die nag nog besig was om die brandoffers en die vetstukke wat geoffer moes word, te verbrand. Dit is hoekom die Leviete vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters die paasete voorberei het. Die sangers van die Asaffamilie was op hulle pos volgens die voorskrifte van Dawid, en Asaf, Heman en Jedutun (hy is die koning se siener) was ook daar. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hulle moes wees. Dit was nie vir hulle nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg. Al die brandoffers is op die Here se altaar verbrand, volgens die opdrag van koning Josia. Die fees van die ongesuurde brood is ook saam met die paasfees sewe dae lank gevier. ’n Paasfees soos dié is daar nie sedert die dae van die profeet Samuel in Israel gehou nie. Geen koning van Israel het die paasfees nog ooit so gevier soos dié een waarin Josia die priesters, die Leviete, almal van Juda en Israel én die inwoners van Jerusalem betrek het nie. Dié paasfees is in Josia se agtiende regeringsjaar gehou. Josia het al die werk voltooi wat hy aan die tempel wou doen. Daarna het koning Neko van Egipte met sy leër verbygetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te gaan oorlog maak. Josia het besluit om sy opmars te gaan keer. Neko het boodskappers met die volgende boodskap aan Josia gestuur: “Hou jou neus uit my sake uit, koning van Juda! Ek is nie hier om vandag teen jou oorlog te maak nie. Ek baklei teen ’n ander koninkryk. God het my beveel om vinnig te beweeg. Moenie inmeng met my planne nie, want God is saam met my. Hy sal jou vernietig.” Josia wou egter nie na Neko luister en terugdraai nie, al was dit God self wat met Neko gepraat het. Hy het Neko in die Megiddovlakte aangeval. Die boogskutters het Josia raak geskiet en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Help my gou om hier weg te kom, want ek is swaar gewond!” Sy lyfwagte het hom uit sy strydwa gehelp, hom in ’n ander een gesit en met hom Jerusalem toe gejaag. Josia is egter aan sy wonde dood. Hy is in die koninklike begraafplaas van Jerusalem begrawe. Al die mense van Juda en Israel het oor Josia se dood getreur. Jeremia het ’n treurlied oor Josia geskryf. Al die sangers en sangeresse sing tot vandag toe oor Josia in hulle treurliedere. Die liedere is in ’n bundel getiteld Die Treurliedere opgeneem. Die res van Josia se geskiedenis, hoe hy geleef het soos die Here se wet sê ’n mens moet leef, word alles, van die begin tot die einde, vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda. Die mense van die land het Josia se seun Joahas in sy plek koning in Jerusalem gemaak. Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Die Egiptiese koning het hom toe sy koningskap ontneem en die land met omtrent drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud beboet. Die Egiptiese koning het toe sy broer Eljakim koning gemaak oor Juda en Jerusalem en sy naam na Jojakim verander. Hy het Joahas as gevangene saamgevat Egipte toe. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie. Koning Nebukadnesar van Babel het hom aangeval, met dik kettings vasgebind en na Babel toe weggevat. Nebukadnesar het ook voorwerpe uit die tempel van die Here vir homself gevat en dit in sy tempel in Babel gaan sit. Die res van Jojakim se geskiedenis, al die slegte dinge wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, is opgeskryf in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het hom opgevolg. Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie. In die lente van die volgende jaar het Nebukadnesar hom na Babel toe laat bring. ’n Klomp van die kosbare voorwerpe van die Here se tempel is toe ook na Babel toe weggevat. Nebukadnesar het Jojagin se broer Sedekia koning van Juda en Jerusalem gemaak. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het geweier om na die profeet Jeremia, wat namens God gepraat het, te luister. Sedekia het ook teen Nebukadnesar in opstand gekom, selfs al het hy in die Here se Naam gesweer dat hy aan Nebukadnesar getrou sou wees. Sedekia was hardkoppig. Hy het volstrek geweier om hom aan die Here, Israel se God, te onderwerp. Die leiers van die priesters en die volk was ook ongehoorsaam aan die Here. Hulle het ander volke se godsdienstige gebruike aangehang en die Here se tempel onrein gemaak met al hulle sondes. Die Here hulle God het keer op keer weer profete na hulle toe gestuur om hulle te waarsku, want Hy was jammer vir sy volk en vir sy tempel. Maar die mense het die boodskappers afgelag en hulle boodskappe verwerp. Hulle het die profete bespot totdat die Here só kwaad was dat Hy besluit het om hulle swaar te straf. Die Here het toe die koning van Babel gebruik om die mense van Juda te straf. Die Babiloniërs het die jongmans van Juda doodgemaak, selfs binne-in die tempel. Hulle het niemand oorgesien nie, geen jongmens nie. Nie eers die oumense is gespaar nie. Die Here het hulle almal in die hande van die koning van Babel oorgelaat. Nebukadnesar het alles wat in die tempel gebruik is, vir homself gevat. Hy het ook al die skatte wat in die Here se tempel, die koning se paleis en in die hoë amptenare se besit was, vir hom gevat. Daarna het hy die tempel van God aan die brand gesteek, die stadsmuur van Jerusalem afgebreek en al die deftige huise in die stad afgebrand. So is alles wat waardevol was, vernietig. Nebukadnesar het die mense wat nie doodgemaak is nie, na Babel toe weggevat. Hulle moes as slawe vir hom en sy seuns gaan werk. Dit het aangehou totdat die koninkryk van Persië die Babiloniërs verslaan het. Toe dit gebeur het, het ’n boodskap van die Here wat deur Jeremia oorgedra is, waar geword: “Die land het uiteindelik sy sabbatsrus geniet toe hy vir 70 jaar verlate was.” In koning Kores van Persië se eerste regeringsjaar het die Here nog ’n voorspelling van Jeremia waar laat word. Die Here het Kores beweeg om ’n koninklike boodskap deur die hele land te stuur. “’n Boodskap van koning Kores van Persië: Die Here, die God van die hemel, het alle koninkryke op aarde in my hande gegee. Hy het vir my die werk gegee om vir Hom ’n tempel in Jerusalem wat in Juda is, te bou. Enigiemand wat deel is van sy volk, mag teruggaan vir dié werk. Mag die Here julle God by julle wees!” In die eerste jaar wat Kores koning van Persië was, het die Here Kores oorreed om ’n besluit te neem. Hy het dit laat neerskryf en na almal in sy ryk gestuur om te lees. Dit het die belofte laat waar word wat die Here vir sy boodskapper Jeremia gemaak het, dat hulle sal terugkom na hulle land toe. Die besluit het so gelui: “Kores, die koning van Persië, gee die volgende opdrag: Die Here, die God van die hemel, het my koning gemaak van al die lande van die wêreld. Die Here het gesê dat ek weer vir Hom ’n tempel in Jerusalem in die provinsie Juda moet bou. Enigeen wat aan die Here se volk behoort, mag nou teruggaan na Jerusalem in Juda toe om te gaan help om die tempel vir die Here te bou. Die Here is die God van Israel. Hy bly in Jerusalem. Mag die Here saam met elkeen wees wat bereid is om terug te gaan. Die ander mense wat saam met hulle op dieselfde plek bly, moet die Judeërs help wat wil teruggaan. Hulle moet vir die mense wat teruggaan, die silwer en goud en diere en vee gee wat hulle gaan nodig kry om God se tempel in Jerusalem te bou.” ’n Hele klomp leiers uit die families van Juda en Benjamin het besluit om terug te gaan. Daar was ook priesters en mense uit die familie van Levi wat by God se huis kon werk, en wou teruggaan. Hulle wou almal teruggaan om die tempel van die Here in Jerusalem te help bou. Die Here het hulle oorreed om te gaan. Hulle bure het hulle ondersteun. Hulle het vir hulle dinge gegee wat van silwer en goud gemaak was. Hulle het ook vir die mense wat wou teruggaan, kos en vee gegee, soos Kores gesê het. Hulle het daarby nog vir hulle allerhande geskenke gegee van goed wat hulle kon gebruik. Koning Kores het die goed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die Here se tempel in Jerusalem weggevat het om dit in sy eie god se tempel te sit. Persië se koning Kores het dit eers vir Mitredat gegee. Hy was die minister van finansies van Persië. Mitredat het ’n lys gemaak van alles wat daar was. Hy het toe die lys vir Sesbassar gegee. Sesbassar was die leier van die groep wat sou teruggaan Juda toe. Op die lys het die volgende gestaan: 30 bakke van goud; 1 000 bakke wat van silwer gemaak is; 29 ander bakke; 30 bekers wat van goud gemaak is. Daar was 410 bekers van silwer en 1 000 verskillende ander stukke. Daar was altesaam 5 400 goed wat van goud en silwer gemaak was. Sesbassar het al hierdie goed saamgevat toe hy die Judeërs uit Babel teruggelei het Jerusalem toe. Hier is nou ’n lys van die families wat teruggegaan het. Nebukadnesar was die koning van Babel. Hy het baie Judeërs gevange geneem en saamgevat na Babel toe. Van hulle het die mense hier onder teruggegaan na Jerusalem toe en na die provinsie Juda om te gaan bly waar hulle voorheen gewoon het. Hulle het saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna teruggekeer. Die getalle van elke familie was soos volg: Paros 2 170; Sefatja 372; Arag 775; Pagat-Moab (afstammelinge van Jesua en Joab) 2 812; Elam 1 254; Sattu 945; Sakkai 760; Bani 642; Bebai 623; Asgad 3 240; Adonikam 660; Bigwai 2 056; Adin 454; Ater, uit die nageslag van Hiskia, 98; Besai 323; Jora 112; Gasum 223 en Gibbar 95. Uit Betlehem was daar 123; uit Netofa 56; uit Anatot 128; uit Bet-Asmawet 42; uit Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743; uit Rama en Geba 621; uit Mikmas 122; uit Bet-El en Ai 223; uit Nebo 52; uit Magbis 156; uit Elam 1 254; uit Garim 320; uit Lod, Gadid en Ono 725; uit Jerigo 345 en uit Senaä 3 630. Uit die priesters wat by God se huis werk wat teruggekom het, was daar: van Jedaja (uit die nageslag van Jesua) 973; van Immer 1 052; van Pasgur 1 247 en van Garim 1 017. Uit die familie van Levi wat teruggekeer het, was daar van Jesua en Kadmiël (uit die nageslag van Hodaja) 74. Sangers uit die Asaf-groep was 128. Mense wat by die deure van die tempel gestaan het uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai was 138. Dié wat by die tempel werk, was: Siga, Gasufa, Tabbaot, Keros, Sia, Padon, Lebana, Gagaba, Akkub, Gagab, Salmai, Ganan, Giddel, Gagar, Reaja, Resin, Nekoda, Gassam, Ussa, Paseag, Besai, Asna, Meünim, Nefusim, Bakbuk, Gakufa, Gargur, Baslut, Megida, Garsa, Barkos, Sisera, Temag, Nesiag en Gatifa. Uit die nageslag van mense wat vroeër vir Salomo gewerk het, was daar: Sotai, Soferet, Peruda, Jala, Darkon, Giddel, Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Ami. Die mense wat by die tempel gehelp het en die nageslag van die mense wat in diens van Salomo was, was 392. [59-60] Daar was mense wat saamgekom het wat nie kon sê aan watter familie hulle behoort het nie. Hulle het gekom van Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer. Hulle was op ’n manier familie van Delaja, Tobija en Nekoda. Daar was altesaam 652 van hulle. *** [61-62] Daar was priesters wat nie kon sê aan watter families hulle behoort het nie. Dit was die groepe van Gabaja, Kos en Barsillai (wat getroud was met ’n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is). Hulle is ook nie as priesters aanvaar nie. *** Die goewerneur wat die provinsie vir die Perse bestuur het, het besluit dat hulle nie saam met die ander priesters van die offers mag eet nie. ’n Priester moes eers met die urim en tummim hulle lot bepaal. Hy moes kyk hoe die steentjies val om te weet wat God oor hulle besluit het. Die groep wat teruggekeer het, was altesaam 42 366. Daarby moet nog 7 337 manlike en vroulike slawe getel word wat saam met hulle gegaan het. In die groep was daar nog ’n verdere 200 sangers en sangeresse wat by die tempel kon werk. Hulle het ook 736 perde, 245 muile, 435 kamele en 6 720 donkies saam met hulle gebring. Toe hulle by die bouvalle van die tempel van die Here in Jerusalem aankom, het die leiers van die families uit hulle eie beursie geld gegee om die tempel te herbou. Hulle het alles wat hulle gehad het vir die “herstelfonds” gegee. Dit was in totaal net meer as 500 kilogram goud, byna 3 000 kilogram silwer en 100 pakke klere vir die priesters. Die priesters, die Leviete, ’n deel van die volk en die sangers, die poortwagte en die tempelwerkers het in Jerusalem gaan bly. Die res van die Judeërs wat teruggekom het, het teruggegaan na die plekke waar hulle oorspronklik vandaan gekom het. Toe die sewende maand van die jaar aanbreek, het die Israeliete van al die plekke waar hulle woon, in Jerusalem bymekaargekom. Jesua seun van Josadak, saam met die priesters en Serubbabel seun van Sealtiël saam met sy helpers, het daar vir die Here ’n offerplek gebou. Hulle wou op die altaar offers vir die Here bring soos Moses dit voorgeskryf het. Hulle was maar bang vir die ander volke wat ook in die land gebly het. Hulle het nogtans die altaar op die plek gebou waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het elke oggend en elke aand vir die Here offers op die altaar gebring. Hulle het die fees van die hutte gevier, soos dit vir hulle in die wet voorgeskryf is. Hulle het elke dag van die fees die offers gebring wat vir daardie dag voorgeskryf is. Na die fees het hulle begin om gereeld daar vir die Here te offer. Hulle het ook gereeld die offers vir die sabbat en die fees van die nuwemaan gebring en vir al die verskillende ander feeste wat vir die Here gehou word. Hulle het weer begin om soos vroeër vrywillige offers vir die Here te bring. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle dus begin om weer gereeld daar by die plek waar die tempel was, vir die Here te offer. In daardie stadium was die hoeksteen van die nuwe tempel nog nie op sy plek gesit nie. Hulle het mense gehuur wat geweet het hoe om klippe vierkantig te kap waarmee hulle die tempel kon bou. Hulle het ook by die Sidoniërs en Tiriërs die dinge geruil wat hulle nodig gehad het. Hulle het by hulle kos, drank en olyfolie geruil vir sederhout wat die Sidoniërs in die Libanonberge gaan kap het. Hulle het van die boomstompe vlotte gemaak en dit in die see vir hulle na Joppe toe gebring. Dit was wettig. Die opdrag van Kores, die koning van Persië, het hulle toegelaat om dit te doen. Serubbabel, Jesua, al die ander priesters en die Leviete en almal wat teruggekom het, het met die bouwerk begin. Dit was in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle by die plek in Jerusalem aangekom het waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het mans uit die familie van Levi wat ouer as twintig jaar was, aangestel om te kyk dat die ander reg bou. Jesua, sy seuns en sy kollegas, en Kadmiël en sy seuns uit die familie van Juda, asook die Leviete het saam toesig gehou oor die bouery van die huis van God. Toe die bouers die hoeksteen vir die Here se tempel op sy plek gaan sit het, het die priesters hulle spesiale klere aangetrek en op hulle plek gaan staan met hulle trompette in hulle hande. Ook die Leviete uit Asaf se familie het op hulle plek gaan staan met simbale. Almal kon toe saam vir die Here sing en sy Naam grootmaak soos Israel se koning Dawid gesê het dit gedoen moet word. Hulle het vir die Here lofliedere gesing en sy Naam grootgemaak: “Ons maak die Here se Naam groot, want Hy is baie goed vir ons. Sy liefde vir Israel hou nooit op nie.” Toe die hoeksteen op sy plek was, het almal wat daar was, uit volle bors vir die Here begin sing oor hoe groot en wonderlik Hy is. Baie van die ouer priesters, Leviete en leiers van families, wat nog met hulle eie oë die vorige tempel gesien het, het hardop begin huil. Baie ander het van vreugde gejuig. Niemand kon onderskei wat vreugdekrete was en watter ’n gehuil was nie. Dit was ’n oorverdowende lawaai wat tot in die verte gehoor kon word. Die mense wat daar gebly het in die tyd dat die Judeërs weggevoer is, was gekant teen die Judeërs en die Benjaminiete wat teruggekom het. Toe hulle agterkom dat die mense wat teruggekom het, begin het om die tempel van die Here, die God van Israel, te herbou, het hulle met Serubbabel en die leiers van die families gaan praat. Hulle het aangebied: “Ons wil graag saam met julle die tempel herbou. Ons bid tot dieselfde God as julle. Vandat die Assiriese koning Esarhaddon ons van ons land af hiernatoe gebring het, offer ons ook vir julle God.” Serubbabel, Jesua en die ander leiers het egter vir hulle gesê: “Ons en julle kan nie saam aan die tempel vir ons God bou nie. Koning Kores van Persië het vir ons die werk gegee om dit te bou. Ons wil dit bou sonder dat iemand anders ons help. Ons doen dit ter wille van die Here. Hy is die God van Israel.” Die mense wat reeds daar gebly het, het toe hulle bes gedoen om die Judeërs te laat ophou. Hulle het hulle selfs probeer bangmaak sodat hulle nie met die bouwerk sou aangaan nie. Hulle het tot amptenare omgekoop om die bouery te laat skade ly. Die hele tyd vandat Kores koning was totdat Darius koning van Persië geword het, het hulle die werk probeer terughou. Hulle het selfs van die koning se amptenare probeer omkoop om die bouwerk te laat stopsit. Jare later, toe Ahasveros so pas koning geword het, het hulle onmiddellik by hom gaan kla. Hulle het ’n klag teen die nuwe intrekkers van Juda en Jerusalem neergeskryf en dit vir die nuwe koning gaan gee. Later jare, toe Artasasta die koning was, het Bislam saam met Mitredat, Tabeël en almal wat met hulle saamgesweer het, ’n brief aan die koning van Persië geskryf. Dit is in Aramees geskryf. Iemand moes dit vir die koning vertaal. Regum, die man wat die Perse as goewerneur vir die gebied aangestel het om dit vir hulle te regeer, en sy sekretaris wat sy skryfwerk doen, het ook vir Artasasta ’n brief geskryf oor Jerusalem. Dié brief is geskryf onder die naam van die goewerneur Regum, die sekretaris Simsai en hulle kollegas, asook die ander amptenare uit Persië, Ereg, Babel en die Elamiete in Susan en die ander volke wat die beroemde Asenappar uit hulle lande na Samaria en die ander plekke in die Wes-Eufraat soontoe oorgeplaas het. In die brief het gestaan: Aan koning Artasasta! Die brief kom van u amptenare van die Wes-Eufraat. Ons wil hê die koning moet weet dat die Judeërs wat van die ander provinsies hier na ons toe getrek het, besig is om in Jerusalem saam te trek. Hulle is besig om daardie slegte en rebelse stad reg te maak vir oorlog. Hulle het die stad se mure weer begin opbou. Die fondament is reeds klaar. Ons wil betyds vir die koning sê dat hulle gaan ophou om hulle belasting aan die koning te betaal die oomblik dat die stad sterk genoeg is en sy mure herbou is. Die koning gaan dan geld verloor. Omdat ons agter u staan en nie graag wil sien dat u skade ly nie, bring ons hierdie saak dringend onder die koning se aandag. Wanneer u in die geskiedenisboeke van die konings wat voor u regeer het gaan kyk, sal u sien dat Jerusalem nog altyd moeilikheid gemaak het. Van lankal af al wou hulle niks weet nie en het hulle dit moeilik gemaak vir die Persiese koning en die ander volke in die provinsies. Dit is ook die rede hoekom die stad destyds verwoes is. Ons wil hê dat u baie goed moet weet dat u hierdie deel in Wes-Eufraat gaan verloor as die stad se mure eers eenmaal klaar gebou is en die stad reg is om oorlog te maak. Die koning het hulle in ’n brief geantwoord: Aan Regum, Simsai die sekretaris en die ander amptenare wat in die provinsie Samaria en die res van Wes-Eufraat woon. Die koning groet julle. Die dokument wat julle vir my gestuur het, is vertaal en vir my gelees. Ek het gesê dat hulle in die geskiedenisboeke moet gaan kyk wat daar oor Jerusalem geskryf is. Dit het uitgekom dat hierdie stad inderdaad van lankal af teen die konings was. Daar was altyd weerstand en oproer in die stad. Jerusalem het sterk konings gehad wat oor die hele Wes-Eufraat regeer het. Hulle het belasting by die ander mense daar gevat. Julle moet vir hierdie mense gaan sê om op te hou met hulle bouwerk. Die stad mag nie herbou word voordat ek self toestemming daarvoor gee nie. Gee dadelik aandag aan die saak. Keer dat daar skade kom vir my ryk. Die oomblik toe die brief van koning Artasasta vir Regum, die sekretaris Simsai en die ander amptenare gelees is, het hulle vinnig na die Judeërs in Jerusalem gegaan. Hulle het die Judeërs gedwing om op te hou met die werk. Die werk het toe tot stilstand gekom. Dit het net so bly lê tot in die tweede jaar wat Darius koning was. In daardie tyd was daar twee mans wat in Jerusalem en Juda God se boodskap gebring het. Die een was Haggai. Die ander was Iddo se seun Sagaria. Hulle boodskappe het Serubbabel seun van Sealtiël en Jesua seun van Josadak aangevuur om weer die tempel van God in Jerusalem te begin bou. Hierdie mans van God het hulle hande sterk gemaak om dit te doen. Tattenai was in daardie stadium die goewerneur van Wes-Eufraat. Hy het Setar-Bosnai en ander amptenare saam met hom Jerusalem toe gevat en met die Judeërs gaan praat. Hy het vir hulle gevra: “Wie het gesê julle mag aangaan om die tempel te bou en te probeer klaarmaak?” Hulle wou ook weet wat die name was van die mans wat aan die hoof was van die bouwerk. Maar God het die leiers van die Judeërs beskerm. Hy het gesorg dat die amptenare hulle toelaat om aan te gaan met die bouery terwyl hulle gewag het vir ’n antwoord op die brief wat hulle vir koning Darius geskryf het. Hier is nou ’n afskrif van die brief wat Tattenai, die goewerneur van Wes-Eufraat, saam met Setar-Bosnai en die ander Persiese amptenare vir koning Darius geskryf het. In die brief het gestaan: Aan koning Darius. Ons groet die koning. Ons wil aan die koning rapporteer dat ons na die hoofstad van Juda gegaan het. Daar word in Jerusalem ’n tempel gebou van gekapte klip en houtbalke wat in die muur vasgesit word. Hulle werk hard. Die werk vorder vinnig. Ons het vir die voormanne by die werk gevra wie vir hulle gesê het hulle mag voortgaan om die tempel te bou en dit klaar te probeer maak. Ons het hulle gevra om vir ons die name van hulle leiers te gee sodat ons dit vir u kan gee. Hulle het ons geantwoord: “Ons aanbid die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om ’n tempel vir Hom te bou. Die tempel is lank terug die eerste keer deur ’n groot koning van Israel gebou. Omdat ons voorouers die God van die hemel kwaad gemaak het, het Hy hulle uitgelewer aan die magtige Nebukadnesar, die Galdese koning van Babel. Hy het hierdie tempel afgebreek en die volk na Babel toe weggevat. Toe Kores koning oor Babel geword het, het hy reeds in die eerste jaar wat hy regeer het ’n besluit geneem dat hierdie tempel van God herbou moet word. Kores het die goue en silwergoed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die tempel in Jerusalem weggevat en saamgevat het na sy eie god se tempel in Babel. Hy het dit vir ’n man gegee wat hy as goewerneur aangestel het. Sy naam was Sesbassar. Die koning het gesê hy moet al hierdie goed gaan terugsit op hulle plek in die tempel in Jerusalem sodra die tempel weer gebou is op die plek waar dit vroeër gestaan het. Sesbassar het toe gekom en die tempel in Jerusalem begin herstel. Van daardie tyd af tot nou toe gaan die bouery aan, maar dit is nog nie klaar nie.” As dit dan vir u goed is, kyk ’n bietjie daar in die konings se geskiedenisse in Babel of hulle die waarheid praat as hulle sê dat Kores besluit het om die tempel in Jerusalem te herbou. Laat ons asseblief weet wat u oor hierdie saak besluit het. Darius het toe gesê hulle moet in die plek waar die koning se geskiedenisse en ander belangrike dinge in Babel gebêre word, gaan kyk of daar so iets is. Dit was uiteindelik in Ekbatana, die hoofstad van die provinsie Medië, waar hulle op die boekrol afgekom het waarin die besluit opgeteken was. Koning Kores het in die eerste jaar dat hy koning was, opdrag gegee dat die huis van God in Jerusalem gebou moet word as ’n plek waar daar altyd offers geslag en offers op die altaar verbrand kan word. Die tempel moet 30 meter hoog en ook 30 meter breed wees. Na elke drie lae bouklip moet daar houtbalke in die mure gesit word. Die geld wat nodig is om die tempel te bou moet uit die staat se geld kom. Alles van goud en silwer wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem weggevat het na Babel toe, moes teruggegee word sodat hulle weer na hulle regte plek in die tempel in Jerusalem kan teruggaan. Darius het teruggeskryf: Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en al die ander Persiese amptenare van Wes-Eufraat, julle moet daardie mense met rus laat. Moenie hulle gaan pla en gaan inmeng met die bouery aan die huis van God nie. Laat die goewerneur van Juda en sy leiers toe om die huis van hulle God op sy ou plek te bou. Ek maak ook nou ’n nuwe wet. Julle moet die Judese leiers help om die tempel vir hulle God te bou. Julle moet uit die belasting wat in Wes-Eufraat betaal word, vir hulle geld gee sodat hulle met die werk kan aangaan en dit kan klaarmaak. Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie. Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê. Hulle moet vir my en my seuns bid dat die Here ons voorspoedig sal maak. Ek maak ook ’n wet dat enigiemand wat nie met my opdrag wil saamwerk nie, aan ’n houtbalk wat uit sy eie huis kom, opgehang moet word. Sy huis moet ’n ashoop gemaak word. Mag die God wat Jerusalem as die plek vir sy tempel gekies het, elke koning of volk vernietig wat skade aan daardie tempel in Jerusalem probeer aanrig. Ek, Darius, het persoonlik hierdie wet gemaak. Dit moet presies net so gedoen word. Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander ampsdraers het Darius se wet na die letter uitgevoer. Die Here se boodskappers Haggai en Iddo se seun Sagaria het hulle moed ingepraat. Die leiers van Juda het flink gevorder met die bouwerk. Uiteindelik het hulle die opdrag klaargemaak wat hulle van die God van Israel en van die Persiese konings Kores, Darius en Ahasveros gekry het. Die bouwerk aan die tempel is afgehandel op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar wat Darius koning was. Die priesters en die Leviete en al die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het, was baie bly om die tempel te begin gebruik. Toe hulle die tempel ingewy het, het hulle altesaam 100 bulle, 200 ramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook ’n offer gebring vir die sonde. Hulle het vir elkeen van die twaalf families van Israel ’n bokram geoffer. Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om hulle werk in die tempel van God in Jerusalem te doen, volgens die voorskrifte van Moses. Die Judeërs wat teruggekom het, het op die veertiende dag van die eerste maand paasfees gehou. Die priesters en die Leviete het hulleself man en muis opnuut aan God verbind om alles vir Hom te doen soos Hy dit van hulle verwag. Hulle het die paaslam vir hulleself en vir die ander priesters geslag en vir almal wat teruggekom het. Die Israeliete wat teruggekom het, het toe saam die paaslam geëet. Ook die mense wat reeds in die land gebly het en wat getrou gebly het aan die Here, die God van Israel, en nie deelgeneem het aan die afgodsdiens van die ander volke in die land nie, het saam met hulle daaraan geëet. Almal was vrolik en het sewe dae lank die fees-sonder-suurdeeg gevier. Die Here het hulle bly gemaak omdat Hy die koning van Assirië se hart verander het sodat hy hulle kon help om die huis van God te bou. Na hierdie dinge gebeur het, het daar ’n man met die naam Esra gekom. Hy was uit die nageslag van die priester Aäron. Op daardie tydstip was Artasasta koning van Persië. Esra was die laaste in die ry van pa’s en seuns van Seraja, Asarja, Gilkija, Sallum, Sadok, Agitub, Amarja, Asarja, Merajot, Seragja, Ussi, Bukki, Abisua, Pinehas, Eleasar en hulle familiehoof, die priester Aäron. Esra was ’n geleerde man. Hy kon baie goed verduidelik wat die wette beteken wat die Here deur Moses vir Israel gegee het. Die Here het hom beskerm. Hy kon by die koning enigiets kry wat hy gevra het. Hy het in die sewende jaar wat Artasasta koning was, van Babel af in Jerusalem aangekom. Daar het ’n hele klomp ander mense saam met hom gekom. Onder hulle was daar mense uit die gewone Israeliete, die priesters wat by die tempel werk, die priesters uit Levi se familie, die sangers wat by die tempel help, mense wat die hekke oppas en ander mense wat ook by die tempel werk. Hulle het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand van dieselfde jaar. Esra het voor die tyd al besluit dat hulle reis na Jerusalem op die eerste van die eerste maand moet begin. God het hom beskerm. Vier maande later het hulle op die eerste van die vyfde maand in Jerusalem aangekom. God was by hom omdat hy met hart en siel die wette van die Here bestudeer het om daarvolgens te lewe. Hy wou graag in Israel ’n leermeester van die reëls en regulasies van die Here wees. Die brief wat koning Artasasta vir Esra, die priester en geleerde in die wet van die Here, gegee het om hom toestemming te gee om Jerusalem toe te gaan, was in Aramees geskryf. Daarin het gestaan: Geteken deur Artasasta, die groot koning, gegee vir Esra, die priester en amptenaar van die wet van die God van die hemel. Ek gee toestemming dat enigeen in my koninkryk uit die volk van die Israeliete of van hulle priesters of hulle Leviete wat graag wil teruggaan Jerusalem toe, vry is om saam met jou te gaan. Die koning en sy raadgewers stuur jou amptelik om in Juda en Jerusalem te gaan ondersoek instel hoe die wet van jou God gebruik word. Jy is tog die kenner van daardie wet. Jy moet die goud en silwer saamvat wat die koning en sy raadgewers skenk aan die God van die Israeliete wat daar in Jerusalem sy tempel het. Jy moet ook al die geld wat jy by mense in die provinsie van Babel kan insamel, saam met jou vat. Ook die geskenke van die volk en van die priesters vir die tempel van God in Jerusalem moet saam met jou gaan. Jy moet versigtig met hierdie geld werk. Koop die bulle, ramme en lammers, en alles wat nodig is vir die offers wat julle bring. Koop ook wat nodig is vir die ander offers waarvan julle ’n deel daar by die tempel mag eet en drink. Gaan offer dit alles op die altaar in julle God se tempel in Jerusalem. Met die goud en silwer wat daarna oor is, kan jy en jou volk maak soos julle dink dit die wil van julle God is. Alles wat vir jou gegee is wat spesifiek vir die tempel van jou God bedoel was, moet jy presies net so vir jou God in Jerusalem gaan gee. As daar nog iets verder vir die huis van God nodig is, mag jy dit op die rekening van die staat koop. Ek, koning Artasasta, het aan al die amptenare in Wes-Eufraat wat met die ryk se geld werk, opdrag gegee om aan Esra, die priester en kenner van die wet van die God van die hemel, te gee wat hy vra. Hy mag tot 3 500 kilogram silwer, 10 000 kilogram graan, 2 000 liter wyn, 2 000 liter olyfolie en ’n onbeperkte hoeveelheid sout aanvra. Alles wat die God van die hemel vir sy huis wil hê, moet presies gegee word, sodat Hy nie dalk kwaad word vir die koning en sy seuns nie. Ek het ook besluit dat geen priester of Leviet of tempelsanger of poortwagter of tempelwerker of enige ander een wat by die tempel werk, enige belasting aan die staat hoef te betaal nie. Esra, jy moet die wysheid gebruik wat jou God jou gee om amptenare en regters in die Wes-Eufraat aan te stel vir almal wat voor die wette van jou God buig. Jy moet die wet leer vir dié wat dit nie ken nie. Jy moet hulle straf wat die wette van jou God of die wette van die staat oortree. Straf daardie persoon met die dood of stuur hom weg of beboet hom of laat hom in die tronk opsluit. Esra het toe gesê: “Ek maak die Here se Naam groot. Hy is die God van my voorouers. Hy het die koning gewillig gemaak om al hierdie dinge vir die tempel van die Here in Jerusalem te doen. Die Here het gemaak dat die koning, sy raadgewers en al sy belangrike amptenare my goedgesind is. Ek het moed geskep omdat ek kan sien dat die Here my God my beskerm. Ek het van die leiers uit die Israeliete na my toe laat kom om saam met my na Jerusalem toe terug te gaan.” Die volgende leiers uit die families is opgeskryf in die lys van persone wat saam met my getrek het toe Artasasta koning in Babel was: Gersom uit die nageslag van Pinehas; Daniël uit die nageslag van Itamar; Gattus die seun van Sekanja uit die nageslag van Dawid; Sagaria uit die nageslag van Paros (daar was 150 mans by hom wat ook in die lys opgeneem is); Eljehoënai die seun van Seragja uit die nageslag van Pagat-Moab (daar was 200 mans by hom); Sekanja die seun van Jagasiël (by hom was daar 300 mans); Ebed die seun van Jonatan uit die nageslag van Adin (met 50 mans); Jesaja die seun van Atalia uit die nageslag van Elam (met 70 mans); Sebadja die seun van Migael uit die nageslag van Sefatja (met 80 mans); Obadja die seun van Jegiël uit die nageslag van Joab (met 218 mans); Selomit die seun van Josifja uit die nageslag van Bani (met 160 mans); Sagaria die seun van Bebai uit die nageslag van Bebai (met 28 mans); Joganan die seun van Katan uit die nageslag van Asgad (met 110 mans). Die nageslag van Adonikam het heel agter geloop. Hulle name was Elifelet, Jeïel en Semaja, en daar was 60 mans by hulle. Dan was daar ook nog Utai en Sabud uit die nageslag van Bigwai. Saam met hulle was daar 70 mans. Ek het almal by die kanaal wat na Ahawa vloei, bymekaar laat kom. Ons het drie dae lank daar oorgestaan. Ek het priesters onder die groep gekry. Daar was egter geen Leviete in die groep nie. Ek het die leiers Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep en ook die leermeesters Jojarib en Elnatan. Ek het hulle na Iddo, die hoof van die skool by Kasifja, gestuur. Hulle moes gaan kyk of hulle nie by Iddo Leviete kon kry wat bereid was om by die tempel van ons God in Jerusalem te gaan werk nie. Ons God was goed vir ons. Hulle het van daar af vir ons ’n baie bekwame Israeliet gestuur. Sy naam was Serebja. Hy was ’n afstammeling van Levi se seun Magli. Van sy seuns en sy broers uit die Leviete wat saam met hom gekom het, was daar altesaam agtien mans. Hulle het ook Gasabja vir ons gestuur. Jesaja uit Merari se nageslag en sy familie en seuns het saam met hom gekom. Hulle was altesaam twintig mans. Daar het ook 220 tempelwerkers van daar af gekom. Hulle was almal uit die nageslag van die mans wat Dawid en die leiers destyds aangestel het om die Leviete te help. Ook hulle name is opgeneem in die lys mense wat teruggegaan het. Ek het daar by die Ahawakanaal almal opgeroep om niks te eet nie en hulle voor God te verootmoedig. Almal moes tot God bid om ons reis voorspoedig te maak en ons en ons kinders en besittings te beskerm. Toe ons met die koning gepraat het, het ek nog so ewe vir hom gesê dat ons God goed sorg vir dié wat op Hom vertrou, maar Hy straf almal wat niks met Hom te doen wil hê nie. Ek was daarna te skaam om nog vir hom te vra om van sy manne saam met ons te stuur wat ons langs die pad teen aanvallers kon beskerm. Ons het daarom maar onsself in God se hand gegee en op Hom vertrou. Hy het ons gehoor en ons beskerm. [24-25] Ek het Serebja en Gasabja en tien van die ander priesters gekies. Ek het vir hulle die geld en die ander goed vir die tempel gegee dat hulle dit kon oppas. Dit was die geskenke wat die koning, sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat in die ballingskap agtergebly het vir die tempel van ons God in Jerusalem gestuur het. *** Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Dit was 22 ton silwer, items wat van silwer gemaak was wat saam 68 kilogram geweeg het, items van goud wat ook 68 kilogram geweeg het, twintig bakke wat van goud gemaak was wat agt en ’n half kilogram geweeg het en twee items van suiwer koper wat net soveel werd soos goud was. Ek het vir die twaalf mans gesê: “Julle is afgesonder vir die Here, die God van ons voorouers. Hierdie goed behoort aan die Here. Die silwer en die goud is vir die Here geskenk. Julle moet daarna kyk en dit goed oppas sodat julle dit presies net so kan gee vir die hoof van die priesters en die Leviete en die leiers van Israel in Jerusalem. Hulle sal dit in die kamers van die tempel in Jerusalem wegbêre.” Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die items vir die tempel gevat en die verantwoordelikheid op hulle geneem om dit Jerusalem toe te vat en te sorg dat dit in die tempel van ons God kom. Ons is op die twaalfde dag van die eerste maand van die Ahawakanaal af weg Jerusalem toe. Ons God het ons beskerm. Hy het langs die pad mooi na ons gekyk en gekeer dat daar mense was wat ons aangeval het of rowers wat ons voorgelê het. Toe ons in Jerusalem aankom, het ons eers vir drie dae gerus. Op die vierde dag het ons die silwer, die goud en die items vir die tempel by die tempel gaan weeg en dit getel. Ons het dit aan die priester Meremot seun van Urija gegee. Eleasar seun van Pinehas was by. Die Leviete Josabad die seun van Jesua en Noadja die seun van Binnuï was ook as getuies by. Elke ding en die presiese gewig soos ons dit opgeskryf het voor ons weg is, was net so daar. Alles is op daardie dag weer geweeg en weer opgeskryf. Almal wat teruggekom het, het toe vir die God van Israel offers gebring wat op die altaar verbrand is. Daar was twaalf bulle vir al die Israeliete. Ons het 96 ramme, 77 lammers en twaalf bokke vir die sonde geoffer. Ons het al hierdie offers vir die Here op die altaar by die tempel verbrand. Hulle het ook die briewe wat die koning geskryf het, vir die koning se amptenare gegee. Hulle was goewerneurs in Wes-Eufraat. Die amptenare het die volk en die tempel van God met alles gehelp wat die koning gesê het hulle vir hulle moet gee. Nadat ons hiermee klaar was, het die leiers na my toe gekom. Hulle het vir my kom sê dat baie van die Israeliete wat in die land agtergebly het, selfs van die priesters en die Leviete, nie hulleself eenkant gehou het van die ander volke in die land nie. Hulle het nie weggebly van die vreeslike dinge wat daardie mense vir hulle afgode doen nie. Hulle het selfs gaan trou met Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete. Van daardie volke het weer met Israeliete getrou. God se volk het deurmekaargeraak met die heidense volke wat saam met hulle in die land bly. Veral die leiers en die priesters het hulle hieraan skuldig gemaak. Ek was so geskok toe ek hiervan hoor dat ek my klere begin skeur het en die hare uit my kop en baard gepluk het asof ek gehoor het van iemand wat dood is. Ek het verslae op die grond gaan sit. Almal vir wie die Here se wet belangrik was, het oorbluf rondom my kom staan. Hulle was ook geskok dat die mense wat al vroeër teruggekom het, nie aan die Here getrou was nie. Ek was egter te stomgeslaan om nog iets te sê. Ek het maar net so bly sit tot dit tyd geword het vir die aandoffer. Toe dit tyd was vir die offer wat aan die einde van die dag gebring word, het ek opgestaan van waar ek gesit en treur het. Ek het op my knieë neergesak en my hande na die Here my God uitgesteek. Ek het gebid: “My God, ek is te oorbluf en te skaam om U in die oë te kyk. Ons oortreding is so groot dat dit oor ons almal se kop gaan. Ons skuld is hemelhoog. Van die tyd van ons voorouers af tot vandag toe het ons aangehou om teen U te oortree. Oor ons sonde het ons en ons konings en priesters in die hande van die konings van die wêreld beland. Hulle het ons met oorlog afgemaai, ons gevang en ons weggevoer nadat hulle ons land geplunder het. Ons het in hierdie skande beland waarin ons vandag nog is. “Vir ’n kort tydjie was die Here ons God goed vir ons. Hy het vir ’n klompie van ons wat oorgebly het, hier by sy tempel weer moed laat skep. Ons God het ons weer hoop laat kry en laat asemskep na ons swaarkry. Ons God het ons nie weggegooi toe ons slawe in ander lande was nie. Hy het die Persiese konings se hart teenoor ons goed gemaak sodat hulle vir ons die kans gegee het om die tempel van ons God weer te kom bou, sy mure weer regop te kry. Ons het gevoel of ons weer vastrapplek in Juda en Jerusalem het. “Maar wat kan ons nou sê, ons God? Ons was al weer ongehoorsaam aan wat U van ons vra. U het ons deur u boodskappers gewaarsku dat die land waarin ons gaan bly, vol is van verkeerde dinge. Die volke wat in die land gebly het, het die land vuil gemaak met die gode wat hulle aanbid en die lelike dinge wat hulle vir die gode doen. Ons moes onder geen omstandighede met hulle trou nie. Ons moes hulle nooit help om aan te gaan met die verkeerde dinge nie. Ons moes vir hulle oppas sodat ons self die goeie dinge van die land kon geniet en die land vir altyd aan ons en ons kinders kon behoort. Na alles wat met ons gebeur het oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het en die sondes wat ons gedoen het, besef ons, Here, dat U Uself moet terughou om ons nie vir ons sondes te straf soos ons eintlik verdien nie. Ten spyte van alles het U selfs gesorg dat daar ’n klompie van ons is wat vandag nog oorgebly het. “Hoe kan ons dan nou weer kom en doen wat U uitdruklik gesê het ons nie moet doen nie? U het duidelik gesê dat ons nie met hierdie volke moet trou nie en nie deurmekaar moet raak met die afskuwelike dinge wat hulle vir die afgode doen nie. Dit is niks minder nie as billik as U nou so kwaad vir ons gaan word dat U ons klompie wat oor is, wil uitroei. “Here, God van Israel, U is regverdig. U was baie genadig om die klompie van ons tot vandag toe te laat oorbly. Maar, Here, ons is skuldig. Eintlik kan niemand van ons dit waag om nog voor U te kom ná dit wat ons gedoen het nie.” Terwyl Esra op sy knieë voor die tempel gestaan en bid en huil het en sy volk se skuld bely het, het ’n groot klomp mense om hom begin saamdrom. Daar was mans en vroue en kinders. Hulle het kliphard saam met Esra gehuil. Een van hulle, Sekanja seun van Jegiël uit die nageslag van Elam, het vorentoe gekom. Hy het vir Esra gesê: “Ons was nie getrou aan ons God toe ons met vroue uit die ander volke getrou het nie. Maar daar is miskien nog hoop vir Israel. Ons kan hierdie saak nog regmaak. Kom ons belowe die Here dat ons al hierdie vroue en die kinders wat ons by hulle het, na hulle mense toe sal laat teruggaan. Dié onder ons wat die Here se wette ken, moet ons help en vir ons sê hoe ons moet maak. Jy moet die voortou neem. Doen wat gedoen moet word dat ons dit reg kan doen. Ons sal agter jou staan.” Esra het toe so gemaak. Hy het die leiers van die priesters en die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle so sal maak. Hulle het dit baie ernstig vir die Here belowe. Esra is van die tempel af weg na die blyplek van Joganan die seun van Eljasib toe. Hy het die nag daar gebly. Hy het egter niks geëet of gedrink nie. Hy het getreur oor al die mense wat teruggekom het en nie aan die Here getrou gebly het nie. Almal in Jerusalem en Juda wat deur die jare teruggekom het, moes in Jerusalem bymekaarkom. Die leiers van die priesters het besluit dat elkeen wat nie binne drie dae in Jerusalem opdaag nie, alles sal verloor wat hy besit. Hy sou ook nie langer as ’n Judeër beskou word nie. Op die derde dag, dit was die twintigste van die negende maand, was al die mans wat in Juda en Benjamin bly, in Jerusalem. Hulle het op die plein voor die tempel van God bymekaargekom. Hulle het gestaan en bewe. Aan die een kant was hulle gespanne oor wat gaan gebeur. Aan die ander kant was dit koud en het dit aanhoudend gereën. Esra het met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle het nie getrou gebly aan die Here nie. Julle het met vroue van ander volke gaan trou. Julle het daardeur Israel se skuld by God net nog meer gaan maak. Luister nou na die Here. Respekteer die God van julle voorouers. Doen wat Hy van julle vra. Hou julle eenkant van die ander volke in die land. Stuur die heidense vroue met wie julle getrou het, terug na hulle eie mense toe.” Almal wat daar was, het toe geantwoord en hardop gesê: “Goed, ons sal doen wat jy vir ons sê!” Daar het ook ’n voorstel gekom: “Ons is baie mense hier bymekaar. Dit reën aanmekaar. Ons kan nie die hele tyd hier buite in die reën bly staan nie. Hierdie ding kan ook nie binne ’n dag of twee klaargemaak word nie. Daar is baie van ons wat aan hierdie oortreding skuldig is. Gee vir ons leiers die opdrag om hierdie saak af te handel. Elkeen wat met ’n vreemde vrou getrou het, kan ’n afspraak maak met die leiers en regters van sy dorp. Dan kan hy die saak saam met hulle afhandel. Op hierdie manier kan ons die Here se woede oor die saak laat ophou.” Die voorstel is deur almal aanvaar. Net Jonatan die seun van Asael en Jagseja die seun van Tikwa, het nie saamgestem nie. Mesullam en die Leviet Sabbetai het ook soos hulle gedink. Om te maak soos hulle besluit het, het Esra mans uit die verskillende families aangewys. Hy het hulle name opgeskryf. Op die eerste dag van die tiende maand het hulle die sake begin aanhoor. Binne drie maande, op die eerste dag van die eerste maand, was die sake van die mans wat met vreemde vroue getrou het, afgehandel. Daar is bevind dat die volgende priesters met vreemde vroue getrou het: Uit die familie van Jesua die seun van Josadak en sy priesters was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja. Hulle het belowe om van die vroue te skei en ’n ram as offer vir hulle sonde vir God te offer om weer vrede by God te kry. Uit die priesterfamilie van Immer was daar Ganani en Sebadja. Uit die familie van Garim was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija. Uit die familie van Pasgur was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa. Onder die Leviete was dit Josabad, Simeï, Kelaja (hy was ook bekend as Kelita), Petagja, Juda en Eliëser. Tussen die sangers was dit Eljasib. Uit die poortwagte was daar Sallum, Telem en Uri. Uit die gewone Israeliete was daar die volgende: Uit die Parosfamilie was dit Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja; uit die Elamfamilie was dit Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia; uit die Sattufamilie het gekom Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa; uit die Bebaifamilie was daar Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai; uit die Banifamilie was dit Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot; uit die Pagat-Moabfamilie was daar Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse; uit die Garimfamilie het gekom Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon, Benjamin, Malluk en Semarja; uit die Gasumfamilie was dit Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi; uit die Banifamilie het gekom Maädai, Amram, Uel, Benaja, Bedja, Keluhi, Wanja, Meremot, Eljasib, Mattanja, Mattenai en Jaäsai; uit die Binnuïfamilie was daar Simi, Selemja, Natan, Adaja, Maknadbai, Sasai, Sarai, Asarel, Selemja, Semarja, Sallum, Amarja en Josef; uit die Nebofamilie het gekom Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja. Al hierdie mans het met vreemde vroue getrou. Sommige van hulle het ook by hulle kinders gehad. Die mans moes die vroue en die kinders laat gaan. Hier volg die verhaal oor alles wat Nehemia seun van Gakalja gedoen het. In die laatherfs van die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta van Persië was ek, Nehemia, in die hoofstad Susan. Ganani, ’n amptenaar in die koning se diens, en ’n klompie ander mense uit Juda het daar by my aangekom. Ek wou by hulle weet hoe dit met die ander Jode gaan wat die ballingskap vrygespring het en ander wat die ballingskap oorleef het, en ook hoe dit in Jerusalem lyk. Hulle sê toe vir my: “Dit gaan glad nie goed met die mense daar in die provinsie Juda nie. Hulle kry baie swaar. Almal spot met hulle. Die muur wat rondom Jerusalem gebou is, lê ook nog steeds in puin en die stad se hekke is nog nie reggemaak nadat dit afgebrand is nie.” Toe ek hierdie slegte nuus hoor, het ek gaan sit en huil. Ek was so hartseer dat ek dae lank niks geëet het nie. Ek het tot die God van die hemel gebid. Ek het vir Hom gesê: “O Here, God van die hemel, U is groot. Almal sidder en bewe voor U. U is die God wat u ooreenkoms nakom teenoor almal wat U liefhet en doen wat U sê. U bly altyd lojaal teenoor almal wat U dien. “Sien my asseblief raak, Here. Ek is u dienaar. Luister na die gebed wat ek dag en nag tot U bid sonder om moeg te word. Ek bid vir u dienaars, die Israeliete. Ek bely dat ons almal teen U gesondig het. Ook ek en my familie het verkeerd gedoen. Ons het nie genoeg respek aan U bewys nie. Ons het nie geluister na die wette en die voorskrifte wat U aan u kneg Moses gegee het nie. “Dink asseblief aan wat U vir Moses gesê het: ‘As julle die rug vir My draai, sal Ek julle onder vreemde volke verstrooi. Maar as julle terugkeer na My toe en doen wat Ek van julle vra, sal Ek julle weer bymekaarmaak, ook al is julle oor die hele aarde verstrooi. Ek sal julle terugbring na dié plek toe waar Ek gekies het om aanbid te word.’ “Die Israeliete is tog u dienaars, u eie volk, wat U met u groot mag en krag verlos het. Here, hoor tog my gebed! Hoor ook die gebede van al die mense vir wie dit ’n vreugde is om U te dien en te eer. Help my met wat ek vandag wil doen; laat die koning my goedgesind wees as ek na hom toe gaan met dit wat ek hom wil vra.” In daardie stadium was dit my werk om die koning se wyn in te gooi. Op ’n dag, vier maande later, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, was hy besig om te eet en ek het wyn aan hom bedien. Hy het my nog nooit voorheen bedruk gesien nie. Daarom het hy vir my gevra: “Wat is fout? Ek kan sien jy is nie siek nie! Maar dan moet jy baie hartseer wees oor iets, of hoe?” Ek was uit die veld geslaan dat die koning dit raakgesien het en sê toe vir hom: “Lank lewe die koning! Ek kan nie anders as om hartseer te wees nie. Die stad waar my voorouers begrawe is, is een groot puinhoop. Al die mure rondom die stad lê plat en die stad se hekke is verbrand.” “Hoe kan ek jou help?” wou die koning weet. Op daardie oomblik het ek ’n vinnige skietgebed opgestuur na die God van die hemel toe. Toe sê ek vir die koning: “As U Majesteit my toelaat om ’n guns te vra: laat my asseblief dan toe om na die landgebied van Juda terug te gaan sodat ek die stad waarin my voorvaders begrawe is, kan gaan herbou.” Die koningin het langs die koning aan tafel gesit. Hy vra toe vir my: “Hoe lank sal dit jou vat en wanneer sal jy terug wees?” Nadat ek hom geantwoord het, het hy vir my toestemming gegee om te gaan. Ek sê toe vir hom: “Ek sal bly wees as U Majesteit vir my briewe gee om vir die goewerneurs van die provinsies wes van die Eufraatrivier te verduidelik dat ek met u goedkeuring terugkeer. Dan kan ek sonder probleme deur hulle gebied na Juda toe reis. Ek het ook ’n brief nodig aan Asaf, die voorman van die staatsbos. Hy moet my van hout voorsien om balke te maak vir die hekke van die fort wat naby die tempel is en ook vir die muur rondom die stad en vir die huis waarin ek gaan bly.” Die koning het toe al hierdie dinge vir my gedoen omdat God in sy goedheid sy hand oor my gehou het. Die koning het ’n klompie van sy offisiere en ruiters saam met my gestuur om my te beskerm. Toe ek by die provinsies wes van die Eufraatrivier aankom, het ek die koning se briewe vir die goewerneurs gegee. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was hulle baie kwaad dat iemand op pad was om die Israeliete te gaan help. Drie dae na my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê. Ek is toe met die Kedronvallei op al langs die muur om die skade te bekyk voordat ek weer deur die Valleihek die stad in is. Niemand het geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie; nie die amptenare of selfs die Jode, die priesters, die vooraanstaande inwoners, die beamptes of die ander wat die werk sou moes doen nie. Ek het tot hiertoe nog al my planne vir myself gehou. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in watter haglike posisie ons is solank Jerusalem se mure vernietig is en die hekke van die stad afgebrand is. Kom ons herbou Jerusalem se mure. Dan kan ons weer trots wees op ons stad!” Ek het hulle vertel dat hierdie sending God se goedkeuring wegdra en hoe Hy my gehelp het, en ook wat die koning gesê het. Hulle reaksie was: “Uitstekend! Kom ons begin dadelik bou!” Hulle het dadelik begin gereedmaak om die werk te doen. Toe Sanballat, Tobija en Gesem hoor wat ons beplan, het hulle ons uitgelag en spottend gevra: “Wat dink julle doen julle? Hoekom waag julle dit om in opstand te kom teen die koning?” My antwoord aan hulle was: “Die God van die hemel sal ons help om suksesvol te wees. Ons is sy dienaars en ons sal die bouwerk doen. Maar julle het geen plek of reg hier nie. Julle moet ook nie dink dat julle in Jerusalem onthou sal word nie.” Die hoëpriester Eljasib en die ander priesters het die bouwerk begin. Hulle het by die Skaaphek begin. Toe hulle die deure klaar gehang het, het hulle dit aan die Here opgedra. Daarna het hulle die gedeeltes tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring voltooi en dit ook aan die Here opgedra. Die mense van Jerigo het die volgende gedeelte gebou en Imri se seun Sakkur die volgende. Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het ook al die balke, deure, skarniere en sluitbalke van die muur ingesit. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die volgende gedeelte herstel. Mesullam die seun van Berekja en die kleinseun van Mesesabel, die volgende, en Sadok Baäna se seun, die volgende. Die mense van Tekoa het die volgende gedeelte opgebou, maar die vooraanstaande mense onder hulle was nie bereid om sulke handewerk vir die Here te doen nie. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het die Jesjanahek herstel. Hulle het ook die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Die volgende gedeelte is deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die mans van Gibeon en Mispa herstel tot by die hoofkwartier van die goewerneur van die Wes-Eufraatprovinsie. Ussiël seun van Garhaja, wat ’n goudsmid is, het die volgende gedeelte herstel, en Gananja, ’n salfmenger, die volgende deel. Hulle het die gedeelte tot by die Breë Muur herbou. Refaja seun van Gur en raadslid oor ’n groot gebied van Jerusalem het die gedeelte langs hulle herstel. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte langs sy eie huis herstel. En Gattus seun van Gasabneja die volgende gedeelte. Malkija seun van Garim en Gassub die seun van Pagat-Moab het saam die deel tot by die Bakoondtoring herbou. ’n Ander raadslid oor ’n groot gedeelte van Jerusalem, Sallum die seun van Loges, en sy dogters het die volgende gedeelte herstel. Die Valleihek is deur Ganun en die mense van Sanoag herstel. Hulle het die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit en die gedeelte van 450 meter tot by die Vullishek gebou. Malkija seun van Rekab en hoof oor die gebied Bet-Kerem het die Vullishek reggemaak. Hy het die hek herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel. Langs hom het Eser die seun van Jesua en die hoof oor die gebied Mispa gewerk. Dit was die deel wat regoor die ingang van die wapenkamer begin het en gestrek het tot by die draai in die muur. Baruk die seun van Sabbai het die gedeelte van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis herstel. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die gedeelte vanaf die ingang na Eljasib se huis tot aan die ander kant van die huis opgebou. Die priesters van die omliggende gebiede het ook gedeeltes van die muur herstel. Benjamin en Gassub het die deel regoor hulle huise reggemaak, en Asarja die seun van Maäseja en kleinseun van Ananeja, die deel reg voor sy huis. Die volgende gedeelte, van Asarja se huis af tot by die draai in die muur en verder tot in die hoek, is deur Binnuï seun van Genadad opgebou. Palal die seun van Usai het die deel van regoor die draai af herstel tot by die toring van die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende gedeelte is deur Pedaja seun van Paros en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het, herbou. Hulle het aan die deel van die muur gewerk tot regoor die Waterhek en die aangeboude toring aan die oostekant. Die mense van Tekoa het die muur van die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herbou; dit was al die tweede gedeelte waarmee hulle besig was. Van bokant die Perdehek af het die priesters elkeen die gedeelte regoor sy huis herstel. Sadok seun van Immer het ook die muur regoor sy huis herstel, en Semaja die seun van Sekanja en opsigter van die Ooshek, die volgende gedeelte. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het hulle deel herstel. Mesullam die seun van Berekja het die deel tot regoor sy blyplek reggemaak. Malkija, ’n goudsmid, het die muur tot by die blyplek van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiehek en tot by die kamer bo-op die hoek, herbou. Die goudsmede en handelaars het die laaste gedeelte van die muur, tussen die kamer op die hoek en die Skaaphek, herbou. Toe Sanballat hoor dat ons Jerusalem se muur herbou, was hy baie kwaad. Hy het die Jode voor sy vriende en die Samaritaanse soldate beledig. “Wat probeer hierdie miserabele klomp Jode doen?” het hy spottend gevra. “Kan dit wees dat hulle die mure wil herbou? Dink hulle sowaar hulle kan hierdie muur in ’n dag herbou net omdat hulle offers bring? Wil hulle bakstene maak van daardie hoop verbrande rommel?” Tobija die Ammoniet, wat langs hom gestaan het, het haastig bygevoeg: “Los hulle, laat hulle maar hulle muur bou. Dit sal in elk geval nie hou nie. As ’n jakkals daarteen opspring, sal dit omval!” Toe het ek gebid: “God, luister hoe spot hulle ons! Draai hulle gespot teen hulle sodat met hulle gebeur wat hulle ons toewens. Laat hulle weggevoer word as ballinge in ’n vreemde land. Moenie hulle verkeerde dade vergewe of hulle sondes vergeet nie, want hulle het die bouers beledig wat besig is om u opdrag uit te voer.” Ons het verder aan die muur gebou. Kort voor lank was dit halfpad voltooi omdat almal met hart en siel help bou het. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere en die inwoners van Asdod hoor dat ons goed vorder en dat daar byna geen openinge meer in die muur was nie, was hulle baie kwaad. Hulle het agteraf besluit om Jerusalem aan te val en die mense in die stad uitmekaar te jaag. Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag- staan. Die werkers in Juda het toe ’n treurige lied gesing: “Die bouers se kragte raak op, die rommel is net te veel om weg te vat, ons gaan nooit hierdie muur klaar gebou kry nie.” Intussen het ons teëstanders gedink: “Voor hulle hulle oë uitvee, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en maak ’n einde aan die bouery.” Die Judeërs wat naby daardie slegte spul gebly het, het ’n hele paar keer na ons toe gekom met die waarskuwing dat hulle ons gaan aanval. Daarom het ek die mense met swaarde, spiese, pyle en boë bewapen. Ek het families saamgesit en hulle agter die muur stelling laat inneem by die plekke wat nog nie heeltemal klaar was nie. Ek het gesien dat die mense benoud was; daarom het ek hulle leiers en amptenare bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Moenie vir daardie slegte mense bang wees nie! Dink eerder hoe asemrowend groot en magtig die Here is. Veg dan met alles in julle vir julle families en julle huisgesinne.” Toe ons vyande agterkom dat ons weet van hulle planne om ons aan te val, het hulle besef dat God dit in die wiele gery het. Daarna kon ons voortgaan met ons werk aan die muur. [16-17] Van daardie dag af het die helfte van die mense aan die muur gebou terwyl die ander helfte waggestaan het met spiese, skilde, pyle en boë en borsharnasse. Die leiers van die volk het almal wat aan die muur gewerk het, elke dag besoek en aangemoedig. Die helpers wat die boumateriaal moes aandra, het hulle werk met een hand gedoen, want in die ander hand het hulle ’n wapen gedra. *** Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly. Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af. As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.” Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens. Ek het ook in dié tyd vir mense wat buite Jerusalem gebly het, gevra om binne-in die stad te kom slaap. So kon ons mekaar aflos met wagstaan in die nag en werk in die dag. Nie ek of my medeamptenare, ons helpers of die wagte wat by ons was, het ooit ’n kans gekry om ons klere uit te trek nie. Selfs as ons gaan bad het, het ons altyd wapens byderhand gehou. In ’n stadium het ’n klompie Judese mans en vroue ernstig gekla oor hulle meer vermoënde medeburgers. Party van hulle het gesê: “Ons het groot families wat moet eet, maar omdat ons aan die muur moet werk, kan ons nie self koring plant om te eet nie. Nou moet ons dit ten duurste koop.” Ander het gesê: “Ons moes al ons lande, wingerde en huise verkoop net om kos in die hande kry.” Nog ’n groep het gesê: “Ons moes geld leen net om die grondbelasting vir die koning op ons lande en wingerde te betaal. Ons behoort tog almal aan dieselfde volk. Ons kinders verskil mos nie van die rykes s’n nie? Maar ons moet ons kinders soos slawe vir ons skuldeisers laat werk. Hulle vat ons dogters as afbetaling van ons skuld. Nou is hulle niks anders as daardie mense se slawe nie. En ons kan niks daaraan doen nie, want ons het klaar reeds ons grond en wingerde weggegee.” Ek was baie omgekrap toe ek al hierdie dinge hoor. Nadat ek lank nagedink het, het ek besluit om met die ryk mense en die leiers te raas. “Julle buit julle mense uit!” het ek vir hulle gesê. Toe het ek ’n openbare volksvergadering belê om oor die probleem te praat en vir hulle gesê: “Ons probeer ons bes om ons Judese volksgenote wat as slawe aan heidennasies verkoop is, terug te kry sodat hulle weer vry kan wees. En nou doen julle presies dieselfde en dit nogal met julle eie mense! Verwag julle dat ons hulle ook nou moet terugkoop?” Niemand het ’n woord gesê nie, want hulle het niks gehad waarmee hulle hulle kon verdedig nie. “Dit is ’n onding wat julle doen!” het ek vir hulle gesê. “Julle is veronderstel om met groot respek teenoor julle God op te tree. Dan sal ons vyande, daardie mense wat nie die Here ken nie, geen rede hê om neer te sien op ons nie. Ek en al my helpers het aan hierdie arm mense geld en koring geleen,” het ek verder gesê. “Kom ons hou nou dadelik op om mense uit te buit wat swaarkry. Gee dadelik hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en kanselleer die rente wat julle op hulle uitstaande skuld op hulle geld, koring, wyn en olyfolie gehef het.” “Ons sal maak soos jy sê en al hulle eiendom teruggee sonder om verdere skuld van hulle te probeer vorder,” was die ander mense se antwoord. Toe het ek die priesters nader geroep en hierdie mense onder eed laat belowe dat hulle hulle woord sou hou. Daarna het ek my sakke as ’n teken uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie sy woord hou nie, net so uit sy huis en besittings uitskud sodat hy niks oorhet nie.” Die hele vergadering het gesê: “Amen; laat dit so wees!” en die Here geprys. Die mense het hulle belofte gehou. Van die twintigste tot die 32ste regeringsjaar van koning Artasasta, gedurende die twaalf jaar dat ek die goewerneur van Juda was, het nie ek of enige van my amptenare ooit aanspraak gemaak op ons amptelike kostoelaag nie. Al my voorgangers het anders as ek opgetree. Hulle het swaar laste op die mense geplaas. Behalwe vir brood en wyn het hulle ook nog elke dag 460 gram silwer van die mense as belasting geëis. Selfs hulle amptenare het die mense misbruik vir hulle eie gewin. Ek het dit nie gedoen nie omdat ek God eer. Ek het voluit aan die muur gewerk en nie eens vir my grond gekoop nie. Ek het van almal wat vir my gewerk het, verwag om aan die muur te werk. Ek het daagliks vir ten minste 150 Judeërs en hulle leiers kos gegee. Dit is nou buiten mense van die omringende gebiede wat by ons kom aansluit het en wat ook daar geëet het. Ek het elke dag ’n bees, ses uitgesoekte slagskape en baie hoenders gaargemaak. Elke tien dae is daar ook ’n nuwe voorraad wyn aangeskaf. Ten spyte van al hierdie uitgawes wat ek uit my sak moes betaal, het ek nooit my goewerneurstoelaag geëis wat ek hiervoor kon gebruik nie. Ek het geweet hoe swaar die mense alreeds kry. My God, onthou tog alles wat ek vir hierdie volk gedoen het. Wees goed vir my daarvoor. Sanballat, Tobija en die Arabier Gesem en die res van ons vyande het gehoor dat ons die muur klaar herstel het en dat dit nie meer in puin lê nie. Ons het egter nog nie die deure van die stadshekke vasgesit nie. Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur waarin hulle my gevra het om hulle in Kefirim in die Onolaagte te ontmoet. Maar ek het besef hulle beplan om my kwaad aan te doen. Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad, en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak. Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.” My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.” Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!” Later het ek na Semaja seun van Delaja en die kleinseun van Mehetabel toe gegaan waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Ons twee moet saam in die woonplek van God, daar in die heiligste deel van die tempel, gaan wegkruip. Ons moet die deur sluit, want daar kom vannag mense om jou dood te maak.” Ek het vir hom gesê: “Ek is nie die soort mens wat weghardloop en gaan wegkruip nie. Moenie dink ek sal in die tempel gaan wegkruip om my lewe te red nie. Vergeet dit!” Toe ek daaroor nadink, het ek besef dat God hom nie gestuur het nie, maar dat Sanballat en Tobija hom omgekoop het om dit vir my te sê. Hulle het gehoop ek sou skrik en doen wat hy sê. Dan sou ek boonop verkeerd doen deur in die heilige deel van die tempel in te gaan. So sou hulle die kans kry om my te beskinder en te verneder voor my mense. My God, onthou tog al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. Straf hulle daarvoor, en ook die skynheilige profetes Noadja en al die ander vals profete soos sy wat my probeer intimideer het. Na 52 dae is die werk aan die muur voltooi. Dit was op die 25ste dag van die maand Elul. Toe ons vyande dit hoor en die ander volke rondom ons dit sien, het hulle grootpraterigheid soos mis voor die son verdwyn. Hulle moes erken dat ons dié werk met God se hulp gedoen het. In daardie tyd was daar heelwat briefwisseling tussen Tobija en van die vooraanstaande Judeërs. Baie van hulle het ’n goeie verhouding met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja die seun van Arag. Sy seun Joganan was getroud met die dogter van Mesullam seun van Berekja. Hulle het my gereeld vertel wat ’n wonderlike mens Tobija was. Alles wat ek gesê het, het hulle vir hom gaan oorvertel. In reaksie het hy dan dreigbriewe na my toe gestuur om my te probeer bang maak. Nadat die muur rondom Jerusalem voltooi en die hekke gehang is, het ek hekwagte, sangers en Leviete aangestel. Ek het die verantwoordelikheid om die stad te regeer aan twee persone opgedra: my broer Hanani en Hanania, die bevelvoerder van die fort. Hanania was ’n baie meer betroubare en godvresende man as enige van die ander. “Moenie Jerusalem se hekke oopmaak voordat die son eers behoorlik skyn na sonop nie. Julle moet ook die hekke deeglik toesluit voordat die hekwagte met sononder van diens af gaan. Stel die wagte aan uit die inwoners van Jerusalem. Party van hulle moet by spesifieke wagposte wagstaan en ander moet voor die huise staan waarin hulle bly,” het ek vir hulle gesê. Jerusalem was ’n groot en uitgestrekte stad, maar die inwonertal was baie klein. Die paar huise wat daar was, was oor die hele stad versprei. God het my toe die idee gegee om die mense, die gewone inwoners, die vooraanstaande inwoners en hulle leiers bymekaar te laat kom sodat ek hulle amptelik kon registreer. Ek het die register met die name van dié wat eerste uit ballingskap teruggekom het, in die hande gekry en hierdie is die inligting wat daarin was: “Hier volg ’n lys van die mense uit die provinsie Juda wat teruggekom het uit die ballingskap waarheen Nebukadnesar, die koning van Babel, hulle weggevoer het. Hulle het teruggekom na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle leiers was: Serubbabel, Josua, Nehemia, Asarja, Raämja, Nagamani, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die aantal mense van die volk Israel wat teruggekom het uit die ballingskap, ingedeel volgens hulle families, was: Paros 2  172, Sefatja 372, Arag 652, Pagat-Moab, uit die families van Josua en Joab, 2 818, Elam 1 254, Sattu 845, Sakkai 760, Bani 648, Bebai 628, Asgad 2 322, Adonikam 667, Bigwai 2 067, Adin 655, Ater, afstammelinge van die familie van Hiskia, 98, Gasum 328, Besai 324, Garif 112. “Mense wie se voorouers in die volgende dorpe gebly het, het ook teruggekeer: Gibeon 95, Betlehem en Netofa 188, Anatot 128, Bet-Asmawet 42, Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743, Rama en Geba 621, Mikmas 122, Bet-El en Ai 123, Nebo 52, Elam 1 254, Garim 320, Jerigo 345, Lod, Gadid en Ono 721, Senaä 3 930. “Die volgende is ’n lys van die priesterfamilies wat teruggekom het: Jedaja, uit die huis van Jesua, 973, Immer 1 052, Pasgur 1 247, Garim 1 017. “Die Levitiese families wat teruggekom het: Jesua uit die familie van Kadmiël uit die Hodaujagroep 74, tempelsangers uit die Asafgroep 148, tempelwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai 138. “Die tempelwerkers met hulle families was: Siga, Gasufa, Tabbaot, Keros, Sia, Padon, Lebana, Gagaba, Salmai, Ganan, Giddel, Gagar, Reaja, Resin, Nekoda, Gassam, Ussa, Paseag, Besai, Meünim, Nefusim, Bakbuk, Gakufa, Gargur, Baslut, Megida, Garsa, Barkos, Sisera, Temag, Nesiag en Gatifa. “Afstammelinge van die werkers van Salomo, saam met hulle families, was: Sotai, Soferet, Peruda, Jala, Darkon, Giddel, Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Amon. Die totaal van al die tempelwerkers en die nakomelinge van Salomo se amptenare was 392. “Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle families en voorouers kon bewys dat hulle van Israelitiese afkoms was nie. Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 642. Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dit is Barsillai wat getroud is met ’n dogter van Barsillai die Gileadiet en toe na hom vernoem is. Hierdie mense kon ongelukkig nie bewys dat hulle name in die registers opgeneem is nie; daarom is hulle nie toegelaat om in die tempel diens te doen as priesters nie. Die goewerneur wou hulle nie eens toelaat om van die offervleis wat vir die priesters uitgehou word te eet voordat daar ’n priester gekom het wat God se wil kon bekendmaak nie. “Die totaal van die groep mense wat teruggekom het, was 42 360 mense, dit is nou bo en behalwe al hulle slawe, mans en vroue, wat altesaam 7 337 mense was. Verder was daar ook nog die musikante, mans en vroue, en hulle was 245. Daar was boonop 435 kamele en 6 720 donkies.” Sommige van die hoofde van die families het bydraes gegee vir die koste verbonde aan die herstelwerk. Die goewerneur het 8,5 kilogram goud, 50 seremoniële waskomme en 530 stelle priesterklere geskenk. Van die ander familiehoofde het 168 kilogram goud en 1 250 kilogram silwer bygedra. Die res van die mense het 168 kilogram goud, 140 kilogram silwer en 67 stelle priesterklere geskenk. Die priesters, die Leviete, die hekwagte, die sangers, ’n deel van die volk en die tempelwerkers het weer in die stede gaan bly waar hulle vroeër vandaan gekom het. Om die waarheid te sê, die hele Israel het dit gedoen. Met die aanbreek van die sewende maand het die meeste Israeliete reeds oral in die stede gebly. Die hele volk het op die eerste dag van die sewende maand op die plein voor die Waterhek bymekaargekom. Hulle het vir Esra, die groot kenner van die wetboek van Moses, gevra om die wetboek, waarin al die opdragte en voorskrifte van die Here vir sy volk Israel opgeteken is, saam te bring. Esra, wat ook ’n priester is, het toe die wetboek gaan haal om dit vir al die mense, mans en vroue wat oud genoeg was om te verstaan, voor te lees. Hy het op die plein voor die Waterhek gestaan en van dagbreek tot vroeg die middag vir hulle gelees. Die mense het aandagtig geluister na wat hy vir hulle gelees het. Esra het op ’n houtverhoog gestaan wat spesiaal vir hierdie geleentheid gemaak is. Daar was ook ander mense saam met hom op die verhoog. Aan sy regterkant was dit Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja. Aan sy linkerkant was dit Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. Almal kon Esra mooi sien waar hy op die verhoog voor hulle gestaan het. Toe hy die wetboek oopmaak om te begin lees, het almal uit respek vir die Here opgestaan. Esra het die Here, die groot God, geprys. Al die mense het hulle hande omhoog gehou en geantwoord met: “Amen, amen.” Daarna het hulle in aanbidding laag op die grond voor die Here gekniel. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet vir die mense verduidelik terwyl hulle daar staan en luister het. Hulle het God se wetboek voorgelees en die mense gehelp om die betekenis daarvan te verstaan. Toe die mense besef wat die voorskrifte van die wet vir hulle beteken, het hulle begin huil. Nehemia die goewerneur, Esra die priester en kenner van die wetboek van Moses, en die Leviete wat besig was om die wet vir die mense te verduidelik het vir hulle gesê: “Moenie huil en hartseer wees nie. Hierdie dag behoort aan die Here. Op hierdie dag maak julle ’n nuwe begin voor die Here julle God. Dit is sy nuwe dag! Gaan huis toe en vier fees, eet en drink van die beste wat julle het. Deel van julle kos met die mense wat self nie genoeg het nie. Vandag behoort aan die Here! Moenie terneergedruk wees nie. Dien die Here met blydskap en Hy sal julle beskerm.” Ook die Leviete het die mense kalmeer met die woorde: “Stil nou, dit is ’n dag wat aan die Here behoort. Dit is nie ’n dag vir trane nie.” Die mense is toe daar weg en het gaan feesvier. Hulle het hulle kos met mekaar gedeel. Almal was opgeruimd en vrolik omdat hulle God se woord gehoor en verstaan het. Die volgende dag het die hoofde van al die families, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wet van God verder te bestudeer. Hulle ontdek toe dat die Here deur Moses beveel het dat die Israeliete gedurende die fees wat in die sewende maand gevier word in hutte moet bly. Hulle het toe die volgende boodskap na Jerusalem en al die omringende dorpe en stede toe gestuur: “Gaan soek in die heuwels na olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en ander digteblaartakke. Maak dan volgens die voorskrif wat die wetboek gee vir julle hutte waarin julle gedurende die feestyd kan bly.” Die mense is toe daar weg en nadat hulle die takke gaan haal het, het hulle hutte gebou. Party het hulle hut op hulle huis se dak gebou, ander in die binnepleine. Party het selfs op die binneplein van die tempel hutte gebou. Ander se hutte het weer by die Waterhek en die Efraimshek gestaan. Al die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het vir hulle ’n hut gebou en daarin gaan bly. Dit was iets wat die Israeliete in Josua se tyd laas op so ’n skaal gedoen het. Almal was opgewonde en bly hieroor. Esra het elke dag, vir die volle duur van die fees, ’n gedeelte van die wet van die Here voorgelees. Die fees het sewe dae geduur en op die agtste dag is daar ’n plegtige afsluitingseremonie gehou. Op die 24ste dag van dieselfde maand het die Israeliete vir ’n vasdag bymekaargekom. Om hulle hartseer oor hulle sonde te wys het hulle sakke in plaas van klere aangetrek en stof op hulle koppe gegooi om te wys dat hulle sondaars is. Die Israeliete wat alle bande met vreemdelinge verbreek het, het opgestaan en belydenis gedoen van hulle sonde. Hulle het ook om vergifnis gevra vir die oortredings van hulle voorouers. Hulle het net so bly staan terwyl die wet van die Here hulle God drie ure lank aan hulle voorgelees is. Toe het hulle daarna nog drie ure lank hulle sonde voor die Here hulle God bely en Hom aanbid. Op die verhoog het die Leviete Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani hardop tot die Here hulle God gebid. Daarna het die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja gesê: “Prys die Here julle God. Hy ken geen begin of einde nie! U groot Naam moet geprys word. U roemryke Naam is verhewe bo alle lof en roem.” U, Here, U is die enigste Here! U het die hemel met al sy sterre en planete gemaak. Ook die aarde met al sy bewoners en die see met alles daarin. U gee lewe. Daarom buig die hemelse skare in aanbidding voor U. U, Here, is die God wat vir Abram geroep het, U het hom laat wegtrek uit Ur van die Galdeërs uit en hom die naam Abraham gegee. Toe U sien dat hy U alleen gedien het, het U met hom ’n ooreenkoms aangegaan dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Jebusiete en die Girgasiete aan hom en sy kinders sou gee. U het u woord gehou omdat U onder alle omstandighede betroubaar is. U het gesien hoe ons voorouers in Egipte gely het. U het gehoor toe hulle ernstig om hulp geroep het by die Rietsee. U het asemrowende wonders gedoen wat die farao, sy werkers en sy volk stomgeslaan het, want U het geweet dat hulle u volk sonder enige respek behandel. Daardeur het U vir U ’n groot en roemryke reputasie opgebou wat tot vandag toe onthou word. U het vir hulle ’n pad deur die see gemaak sodat hulle droogvoets daardeur kon loop. Maar hulle vyande wat hulle agtervolg het, het U in dieselfde see laat verdrink. U het hulle soos ’n klip na die bodem toe laat sink. Bedags het U met ’n wolkkolom voor hulle uitgetrek om vir hulle die pad te wys en snags met ’n kolom van vuur, sodat hulle nie verdwaal het nie. U het afgekom uit die hemel na die berg Sinai toe en uit u woonplek met hulle gepraat. Die opdragte wat U vir hulle gegee het, was nie moeilik om te gehoorsaam nie. U wette is vir altyd waar en geldig. Dit wat U voorskryf, is goed en reg. U het hulle geleer wat U van hulle verwag op die sabbat. U het u wil baie duidelik in die gebooie en in al u ander wette bekendgemaak deur u dienaar Moses. Toe hulle honger was, het U vir hulle brood uit die hemel gegee. Toe hulle dors was, het U water uit ’n rots laat stroom waarvan hulle kon drink. U opdrag aan hulle was om die land wat U aan hulle belowe het, in besit te gaan neem. Maar ons voorvaders was verwaand en hardkoppig. Hulle het geweier om te doen wat U sê. Hulle wou nie luister nie. Hulle het vergeet van al die wonderwerke wat U langs die pad gedoen het. Hulle was vasbeslote om terug te gaan Egipte toe om weer slawe te wees. Maar, God, U is bereid om te vergewe. U is vol goedheid en ontferming, U tree met deernis en liefde op. Daarom het U hulle nie aan hulle eie lot oorgelaat nie. Selfs toe hulle vir hulle ’n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van ’n kalf en gesê het: “Hier is jou god wat jou uit Egipte gered het!” en die vieslikste goed aangevang het, het U in u oorvloedige liefde hulle nie in die woestyn aan hulle eie lot oorgelaat nie. Die wolkkolom was steeds in die dag daar om vir hulle die pad te wys en die vuurkolom om in die nag vir hulle lig te gee. In u oorvloedige goedheid het U u goeie Gees gestuur om hulle te leer wat U van hulle verwag; U het nie die manna van hulle teruggehou nie, en as hulle dors was, het U vir hulle water gegee. Veertig jaar lank het U hulle in die woestyn opgepas. Hulle het nooit iets nodig gehad nie. Hulle klere het nie oud geword nie, hulle voete het nie eens opgeswel van die baie loop nie. U het hulle gehelp om magtige ryke en nasies te oorwin wat aan hulle eie gebied gegrens het. Hulle het ook koning Gesbon se land, Sihon, en koning Og se land, Basan, oorgeneem. U het hulle net soveel kinders gegee as wat daar sterre aan die hemel is. U het die land wat U aan hulle ouers belowe het, vir hulle gegee om in te bly. Hulle kinders het die land ingeneem. U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, die knie laat buig voor hulle. U het hulle mag gegee oor die konings en die volk van die land sodat hulle met hulle kon doen net wat hulle wou. Hulle het die stede wat deur dik mure omring is, ingeneem en die vrugbare grond vir hulle gevat. Hulle het huise vol van die mooiste goed vir hulleself gevat. Die putte was klaar gegrawe; daar was volop wingerde, olyfboorde en vrugtebome. Die Israeliete het meer as genoeg kos gehad om te eet; hulle was later spekvet. U het hulle oorlaai met u goedheid. Maar die Israeliete was ongehoorsaam en opstandig teen U. Hulle het hulle nie aan u opdragte gesteur nie. Hulle het u boodskappers doodgemaak omdat hulle u volk gewaarsku het om U opreg te dien. Hulle het skandelike dinge aangevang. Daarom het U hulle aan hulle vyande oorgelewer, wat hulle baie swaar laat lewe het. Toe dit gebeur, het hulle vinnig na U toe gehardloop en hulp gevra en U het hulle gebede verhoor, U wat in die hemel bly. Omdat U so baie vir hulle omgee, het U vir hulle leiers gestuur om hulle te help teen hulle vyande. Maar die oomblik toe dit goed gaan, het hulle weer presies dieselfde goed aangevang. Daarom het U weer hulle vyande toegelaat om oor hulle te regeer. Tog, toe hulle terugkom en om verskoning vra, het U keer op keer uit die hemel weer tot hulle redding gekom. Dit het U gedoen omdat U vir hulle lief is. U het hulle gewaarsku om te luister na wat U hulle leer, maar hulle was te vol van hulleself. Hulle het hulle nie aan u opdragte gesteur nie. Hulle het gelag vir u Woord, alhoewel dit lewe gee aan elkeen wat dit gehoorsaam. Hulle was moedswillig en hardkoppig. Hulle het geweier om na U te luister. Vir baie jare lank was U geduldig met hulle. U het u profete met u Gees geïnspireer om hulle te waarsku dat hulle op die verkeerde pad is, maar hulle het hulle doof gehou. Daarom het U hulle aan nasies oorgelewer wat U nie ken nie. Maar omdat U so ongelooflik goed is, het U hulle nie heeltemal uitgeroei of u rug vir hulle gedraai nie. U het hulle nie in die steek gelaat nie, want U is ’n God wat vol goedheid en ontferming is. Ons God, hoe groot is U! U is ongelooflik sterk; almal het groot respek vir U. Omdat U vir ons omgee, hou U elke belofte van die ooreenkoms wat U gemaak het. Moet tog nie by ons verbykyk in ons ellende nie. Van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe het ons almal, ons konings, ons leiers, ons priesters, ons profete, ons voorouers, ja, die hele volk, al baie swaargekry. U het reg opgetree om ons te straf, U was reg; ons verkeerd. Ons konings, ons leiers, ons priesters en ons voorouers het nie gedoen wat U in u wet sê nie. Hulle het hulle doof gehou vir u bevele en u waarskuwings. Selfs toe hulle eie konings oor hulle regeer het en U hulle oorlaai het met net die beste in ’n vrugbare land, het hulle U nie gedien of opgehou met hulle sonde nie. Vandag is ons slawe in die land wat U vir ons voorouers gegee het sodat hulle daaruit kon lewe. Ten spyte van al die oorvloed in hierdie land is ons slawe! Die oorvloed van hierdie land behoort vandag aan die konings wat U oor ons laat regeer as gevolg van ons sonde. Hulle maak met ons en ons vee net wat hulle wil. Ons het groot probleme. Daarom maak ons ’n plegtige belofte teenoor U wat ons op skrif wil stel. Ons leiers, die Leviete en die priesters het dit namens ons met hulle handtekeninge bevestig en toe verseël. Die volgende name staan op die verseëlde dokument: die goewerneur Nehemia die seun van Gakalja en die priesters Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsja, Bilga en Semaja. Die Leviete wat geteken het, was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep, en Kadmiël, ook hulle ampsgenote Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani en Beninu. Die leiers van die volk wat geteken het, was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna. Die res van die volk, die priesters, Leviete, tempelwagte, sangers en die ander tempelwerkers en al die ander mense wat hulle bande met die heidenvolke verbreek het om God te dien, asook hulle vroue en kinders, almal wat oud genoeg was om self ’n besluit te kon neem, het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n eed afgelê om volgens die Here se wil te leef soos Hy dit deur sy dienaar Moses bekendgemaak het. Verder het hulle ook belowe om al die Here ons God se voorskrifte te gehoorsaam. Dit is wat hulle belowe het: “Ons sal nie ons kinders toelaat om met die kinders van die mense van hierdie land wat U nie ken nie, te trou nie. “Wanneer die ongelowiges hulle handelsware of koring op ’n sabbat of enige ander dag wat spesiaal aan die Here gewy word na ons toe bring, sal ons dit nie koop nie. “Ons sal ook elke sewende jaar nie ons landbougrond bewerk nie en ons sal almal se skuld kanselleer. “Verder sal ons almal jaarliks vier gram silwer bydra vir die uitgawes om die woonplek van God in stand te hou. Dit is nou vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer van ’n lam in die oggend en ’n lam in die aand, ook vir die offers op die sabbat, nuwemaansfeeste en die ander jaarlikse feeste; vir die spesiaal afgesonderde dae wat aan die Here gewy word en vir die offers vir Israel se sondes om hulle verhouding met die Here in orde te kry; en ook vir al die ander werk in God se woning in Jerusalem. “Ons sal op ’n rotasiebasis sorg dat die priesters, die Leviete en die volk volgens hulle families verantwoordelikheid neem om hout te voorsien vir die offers wat op die altaar van die Here ons God gebring word. Ons sal al die voorskrifte hieroor nakom. “Ons sal elke jaar van die eerste graan wat ons oes en van die eerste vrugte wat ons van die vrugtebome afpluk tempel toe vat as ’n offer om vir die Here dankie te sê. “Ons sal volgens die voorskrif van die Here se woord ons oudste seuns na die tempel toe vat en hulle daar aan die Here toewy deur die vasgestelde prys aan die tempel oor te betaal. Ons sal dieselfde doen met die eerstelinge van ons vee, ons beeste, sowel as ons kleinvee. Ons sal hulle vir die priesters bring wat in die tempel van ons God diens doen sodat hulle daarvan kan leef. “Ons sal die eerste deeg wat na die koringoes gemaak word vir die priesters by die tempel vat. Ook die beste van ons ander graanprodukte, ons vrugte, ons wyn en ons olyfolie. Hier kan dit in die voorraadkamers van die tempel gebêre word. Ons sal ’n tiende van ons gesaaides vir die Leviete gee. Hulle sal dit in al die gebiede waar daar gesaai word, kom insamel. “’n Priester uit die geslag van Aäron moet saam met die Leviete kom wanneer hulle die tiendes kom haal. Hiervan moet die Leviete dan een tiende in die voorraadkamer van die tempel gaan bêre. “Die Israeliete en die Leviete moet die offers van graan, wyn en olie na die tempel se voorraadkamers toe bring. Dit is daar waar die gereedskap gebêre word wat in die tempel gebruik word, en waar die priesters bly wat diens doen, asook die tempelwagte en die lede van die tempelkoor. “Ons belowe om nie God se woonplek in Jerusalem af te skeep nie.” In hierdie stadium was dit nog net die leiers van die volk wat in die heilige stad, Jerusalem, gebly het. ’n Tiende van die mense van die omringende dorpe is deur die lot aangewys om ook daar te kom bly. Die res van die mense het in die dorpe aangebly om daar met die boerderywerksaamhede voort te gaan. Daar was mense wat bereid was om uit hulle eie in Jerusalem te gaan bly; hiervoor het die ander mense baie groot waardering gehad. Hier volg nou ’n lys van die name van die hoofde van provinsies wat in Jerusalem gaan woon het. Die meeste van die mense, die priesters, die Leviete, die tempelwerkers en die nageslag van Salomo se amptenare het in hulle eie huise op hulle eie grond in hulle eie stad bly woon. Sommige van die mense uit Juda en Benjamin het hulle in Jerusalem gaan hervestig. Uit die stam van Juda was dit: Ataja die seun van Ussia, die seun van Sagaria, die seun van Amarja, die seun van Sefatja, die seun van Mahalalel, almal uit die nageslag van Peres; Maäseja die seun van Baruk, die seun van Kol-Gose, die seun van Gasaja, die seun van Adaja, die seun van Jojarib, die seun van Sagaria, die seun van Siloni. Die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was altesaam 468, almal uitstaande mense. Uit die stam van Benjamin was dit: Sallu die seun van Mesullam, die seun van Joëd, die seun van Pedaja, die seun van Kolaja, die seun van Maäseja, die seun van Itiël, die seun van Jesaja, asook Gabbai en Sallai. Daar het altesaam 928 Benjaminiete in Jerusalem gebly. Joël die seun van Sikri was hulle leier, en Juda die seun van Senua was tweede in bevel oor die stad. Die priesters was: Jedaja die seun van Jojarib, en Jakin; Seraja die seun van Gilkija, die seun van Mesullam, die seun van Sadok, die seun van Merajot, die seun van Agitub, was die hoof van die tempel. Hulle ampsgenote, wat die dienswerk in die tempel gedoen het, was 822. Verder was daar Adaja die seun van Jerogam, die seun van Pelalja, die seun van Amsi, die seun van Sagaria, die seun van Pasgur, die seun van Malkija. Altesaam 242 lede van hierdie familie was leiers. Daar was ook Amassai die seun van Asarel, die seun van Agsai, die seun van Mesillemot, die seun van Immer. Daar was 128 lede van hierdie familie wat uitstaande soldate was. Hulle bevelvoerder was Sabdiël die seun van Gedolim. Die Leviete was: Semaja die seun van Gassub, die seun van Asrikam, die seun van Gasabja, die seun van Bunni; Sabbetai en Josabad was prominente figure onder die Leviete en hulle was verantwoordelik vir die werk buite die tempel; Mattanja die seun van Miga, die kleinseun van Sabdi, ’n afstammeling van Asaf, was die koorleier. Hy het hulle in die gebed van danksegging gelei. Bakbukja was Mattanja se assistent. Daar was ook Abda die seun van Sammua, die seun van Galal, die seun van Jedutun. Daar was altesaam 284 Leviete in Jerusalem, die stad wat aan God gewy is. Die hekwagte: Akkub, Talmon en hulle assistente wat by die hekke waggehou het, was altesaam 172. Die res van Israel en die priesters en Leviete het oral in die stede van Juda op hulle familiegrond gebly. Die tempelwerkers het op die Ofelheuwel gebly. Hulle het onder die toesig van Siga en Gispa gewerk. Die leier van die Leviete in Jerusalem was Ussi die seun van Bani, die seun van Gasabja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, uit die nageslag van Asaf, wie se familie verantwoordelik was vir die musiek tydens die tempeldienste. Daar was sekere koninklike reëls wat bepaal het wat hulle daagliks moes doen. Petagja die seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag die seun van Juda, het die volk in die Persiese hof verteenwoordig. Baie mense het in dorpe naby hulle plase gebly. Dié uit die stam van Juda het in Kirjat-Arba, Dimona en in Kabseël en in van die ander kleiner nedersettings in hulle omgewing gebly. Ook in Jesua, Molada en Bet-Pelet, in Gasar-Sual, en ook in Berseba en die nedersettings in daardie omgewing. Ook in Siklag en in Mekona met hulle omringende dorpies en in En-Rimmon, Sora en Jarmut. Hulle het ook in Sanoag en Adullam en die nedersettings by hulle gebly. Hulle het in Lakis en op die plase daar naby gebly, asook in Aseka met sy omringende dorpies. Hulle het dus in die gebied gebly wat strek van Berseba in die suide tot by die vallei van Hinnom in die noorde. Die stam van Benjamin het in Geba, Mikmas, Aja en Bet-El met sy nedersettings gebly. Verder ook in Anatot, Nob, Ananeja, Gasor, Rama, Gittajim, Gadid, Seboïm, Neballat, Lod, Ono en Vakmansdal. Sommige van die Leviete in Juda is gestuur om by die stam van Benjamin te gaan bly. Die volgende is ’n lys van die priesters en Leviete wat saam met Serubbabel die seun van Sealtiël en Jesua die hoëpriester uit die ballingskap teruggekom het: Seraja, Jeremia, Esra, Amarja, Malluk, Gattus, Sekanja, Regum, Merajot, Iddo, Ginneton, Abia, Mijamin, Maädja, Bilga, Semaja, Jojarib, Jedaja, Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja. Hulle was die leiers van die priesters en van hulle kollegas in Jesua se tyd. Die Leviete was Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja. Mattanja en sy kollegas was verantwoordelik vir die lofprysing in die tempel. Hulle kollegas Bakbukja en Unni het regoor hulle gestaan tydens die diens. Jesua was Jojakim se pa, Jojakim op sy beurt was Eljasib se pa, Eljasib was Jojada se pa, Jojada was Jonatan se pa en Jonatan was die pa van Jaddua. Tydens Jojakim se regering was die volgende mans aan die hoof van die families van priesters: Meraja was hoof van die familie Seraja, Gananja van Jeremia, Mesullam van Esra, Joganan van Amarja, Jonatan van Malluk, Josef van Sebanja, Adna van Garim, Gelkai van Merajot, Sagaria van Iddo, Mesullam van Ginneton, Sikri van Abia, Piltai van Mijamin en Maädja, Sammua van Bilga, Jonatan van Semaja, Mattenai van Jojarib, Ussi van Jedaja, Kallai van Sallu, Eber van Amok, Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja. Die hoofde van die families van die Leviete is in die tyd van die priesters Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua opgeskryf. Dit was tydens die regering van Darius die Pers. Die Levitiese familiehoofde is in die Kroniekeboeke opgeskryf tot die tyd van Joganan die seun van Eljasib. Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua die seun van Kadmiël. Tydens die lofprysing-en-aanbiddingsessies het hulle kollegas regoor hulle gestaan volgens Dawid, die man van God, se voorskrif. Dit was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam. Talmon en Akkub was die hekwagte wat in bevel was van die voorraadkamers by die hekke. Hierdie mense het in die tyd van Jojakim die seun van Jesua, die kleinseun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen. Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere. Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak. Toe het ek die leiers van Juda op die muur laat klim en twee groot kore saamgestel wat om die stad moes loop terwyl hulle die Here loof en prys. Die een koor het in ’n suidelike rigting al op die muur langs geloop tot by die Mishek. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda is gevolg deur Asarja, Esra, Mesullam, Juda, Benjamin, Semaja en Jeremia. Daar was ook priesters met trompette: Sagaria die seun van Jonatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, en sy kollegas Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het die musiekinstrumente bespeel wat Dawid, die man van God, voorgeskryf het. Esra het die optog gelei. By die Fonteinhek is hulle reguit met die trap op wat in die rigting van die Dawidstad gelei het. Hulle het verby Dawid se paleis geloop en van daar af is hulle ooswaarts na die Waterhek toe. Die ander koor het noord op die muur geloop. Ek en die ander helfte van die mense het hulle gevolg. Ons het by die Bakoondtoring verbygeloop tot by die Breë Muur. Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan. Die twee kore is toe van daar af tempel toe waar hulle op die plek wat vir hulle aangewys is, gaan staan het. Ek en die groep leiers saam met my het ook ons plekke ingeneem. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, gevolg deur Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die koor onder leiding van Jisragja het uit volle bors tot eer van die Here gesing. Op daardie dag het hulle baie offers gebring. Die mense was opgeruimd en vrolik, want God het hulle in staat gestel om die bouprojek suksesvol af te handel. Almal, ook die vroue en kinders, het aan die feesviering deelgeneem. Jy kon die vrolike klanke en musiek van ver af hoor. Op daardie dag het hulle ook mense aangestel om in beheer te wees van die store waarin die bydraes vir die tempel gebêre is. Dit het die eerste offers van die oes en die tiendes ingesluit. Hierdie mense was verantwoordelik daarvoor om hierdie offers op die plase buitekant die stede te gaan haal sodat die priesters en die Leviete daarvan kon leef, soos die Here dit voorgeskryf het. Die mense het dit met vrymoedigheid gegee, want hulle was baie bly dat die priesters en die Leviete weer hulle werk kon doen. Hulle het hulle diensbeurte in die tempel getrou nagekom en ook die regte offers vir die volk se sondes gedoen, soos die Here verwag. Net so het die tempelsangers en die hekwagte ook hulle taak uitgevoer soos dit deur Dawid en sy seun Salomo voorgeskryf is. Dit was alreeds in die tyd van Dawid en Asaf die gebruik om musikante en sangers te hê wat die lofprysing in die tempel tot eer van God gelei het. In Serubbabel en Nehemia se tyd het die mense elke dag gesorg dat die sangers en die hekwagte genoeg kos gehad het. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Dié het weer op hulle beurt gesorg dat die priesters ook hulle deel kry. In daardie tyd, terwyl hulle gedeeltes uit die boek van Moses vir die volk voorgelees het, het hulle op die gedeelte afgekom wat sê dat geen Ammoniet of Moabiet ooit in God se gemeente toegelaat moes word nie. Die rede hiervoor was dat die Ammoniete en die Moabiete geweier het om vir die Israeliete kos of water te gee in die tyd van die uittog uit Egipte. Om die waarheid te sê, dit was hulle wat vir Bileam gehuur het om Israel te vervloek sodat God niks meer van hulle sou hou nie. Ons God het sy vloek in ’n seën verander. Toe die mense hierdie woorde hoor, het hulle besluit om geen vreemdelinge onder die Israeliete toe te laat nie. Die priester Eljasib, wat die opsigter van die tempelstoorkamers was, en Tobija was lank reeds goeie vriende. Daarom het hy Tobija toegelaat om in ’n ruim kamer in te trek. Hierdie kamer was eintlik bedoel as stoorplek vir die koring, wierook en gereedskap wat hulle in die tempel gebruik het, asook vir die tiendes van die koring, wyn en olyfolie wat vir die Leviete, die tempelmusikante en die tempelwagte bedoel was. Die priesters se deel van die offers is ook daar gebêre. Ek was nie in Jerusalem toe hierdie dinge gebeur het nie, aangesien ek in die 32ste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babel, na die koning toe terug is om aan hom te gaan rapporteer hoe alles afgeloop het. Na ’n ruk het ek sy toestemming gekry om terug te gaan. In Jerusalem aangekom, was ek geskok om uit te vind dat Eljasib vir Tobija toegelaat het om in ’n kamer op die tempelterrein te bly. Ek was so kwaad dat ek al Tobija se goed uit die kamer op straat gegooi het. Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word. Ek het ook gehoor dat die Leviete nie hulle deel van die offers gekry het nie. Daarom is die meeste van hulle en die tempelmusikante elkeen terug na sy eie plaas toe. Ek het met die leiers geraas omdat hulle toegelaat het dat die tempel verwaarloos word. Daarna het ek die Leviete en die tempelmusikante gaan haal sodat hulle weer hulle werk vir die Here kon doen. Hierna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, wyn en olyfolie na die tempelstoorkamer toe gebring. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook vir Ganan die seun van Sakkur en kleinseun van Mattanja, aangestel as hulle assistent. Die mense het geweet dat hulle eerlike en opregte mense is. Daarom het hulle hulle vertrou om die voorraad regverdig te verdeel. My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie. In daardie tyd het ek gesien hoe die mense van Juda op ’n sabbat by hulle wynperse werk. Dit was nie al nie; hulle het ook sakke vol koring, wyn, vye en allerhande ander handelsware op hulle donkies gelaai en dit Jerusalem toe gevat om dit daar te gaan verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie sulke goed op ’n sabbat te doen nie. Daar het ook mense van Tirus in Jerusalem gebly en hulle het vis en allerhande ander goed in die stad ingebring en dit op die sabbat aan die mense in Jerusalem verkoop. Ek het ernstig met die leiers van Juda hieroor gepraat: “Besef julle nie dat julle die sabbat verkeerd hou as julle sulke goddelose goed toelaat nie?” het ek gevra. “Was dit nie presies wat julle voorouers gedoen het nie? Dit is oor sulke dinge dat hierdie stad vernietig is. Al wat nou gaan gebeur, is dat God weer verskriklik kwaad gaan word omdat julle toelaat dat die sabbat so verkeerd gehou word.” Ek het toe beveel dat die stadshekke gesluit moes word sodra dit begin donker word op die Vrydagaand voor die sabbat en dat hulle nie weer oopgesluit mag word voordat die sabbat verby was nie. Ek het van my eie mense aangestel om die hekke op te pas om seker te maak dat niks die stad inkom nie. Dit het een of twee maal gebeur dat van die handelaars op hierdie aande net buite Jerusalem kamp opgeslaan het. Ek het hulle ernstig gewaarsku en gesê: “Wat dink julle doen julle hier? Dit help nie julle wag hier buite vir iemand om uit te kom nie. As julle dit weer doen, gaan ek julle laat arresteer!” Van toe af het hulle nie weer op die sabbat daar aangekom nie. Ek het toe vir die Leviete opdrag gegee om hulleself aan die Here te gaan toewy sodat hulle die hekke op die sabbat kon oppas. Op hierdie manier kon hulle sorg dat die sabbat gehou word as ’n dag wat spesiaal aan die Here behoort. Onthou my asseblief ook vir hierdie goeie daad, my God. Gee tog baie vir my om. U is tog die God wat ons liefhet. Ek het ook in daardie tyd gesien dat baie Joodse mans met vroue van Asdod, Ammon en Moab getroud is. Erger nog, die helfte van hulle kinders het die taal van Asdod, of die een of ander vreemde taal gepraat. Hulle kon nie eens hulle eie moedertaal praat nie. Ek het hierdie mans hiermee gekonfronteer en baie streng teen hulle opgetree. Ek het die Here gevra om hulle hieroor te straf. Ander het my so kwaad gemaak dat ek hulle sommer laat slaan het en hulle aan hulle hare laat rondpluk het sodat hulle kon verstaan dat hulle verkeerd optree. Ek het hulle die volgende voor God laat beloof: “Ons dogters sal nie met ongelowige volke se seuns trou nie, en hulle dogters sal ook nie met ons seuns of met onsself trou nie.” “Kyk maar na koning Salomo,” het ek ook vir hulle gesê. “Daar was nie nog ’n koning soos hy nie. God het hom liefgehad en hy het oor die hele Israel regeer. Tog was sy liefde vir die vroue van ander volke sy ondergang. Hoe kan julle selfs daaraan dink om so ’n sonde te pleeg en verkeerd teenoor God op te tree deur met vreemde vroue te trou!” ’n Seun van Jojada, die hoëpriester Eljasib se seun, het met Sanballat die Goroniet se dogter getrou. Vir hom het ek summier uit die gemeente weggejaag. Moenie vergeet wat hulle gedoen het nie, my God. Hulle het die priesterskap en al die beloftes van die ooreenkoms wat die priesters en Leviete voor U afgelê het, onder hulle voete vertrap. So het ek die mense en die stad gehelp om ontslae te raak van alles wat vreemd en verkeerd was in die oë van die Here. Ek het ook spesifieke diensbeurte vir die priesters en die Leviete ingestel en seker gemaak dat hulle presies geweet het wat om te doen. Ek het ook seker gemaak dat die hout wat vir die offers gebruik word, op die regte tyd daar was en dat die mense hulle eerste opbrengs van hulle koring en vrugte as ’n dankoffer tempel toe gebring het. Onthou asseblief al hierdie dinge, my God! Wees baie goed vir my! [1-2] Die volgende verhaal het in die tyd van koning Ahasveros van Persië afgespeel. Uit sy paleis in Susan het hy oor 127 provinsies regeer, wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië. *** In sy derde jaar as koning het hy ’n groot fees gehou vir al sy hoë amptenare en ander werknemers. Die weermagoffisiere van Persië en Medië was daar, asook ander uitgesoekte gaste en die regeerders van die provinsies. Ses maande lank het hy met sy rykdom en indrukwekkende koninkryk gespog. Daarna het die koning almal in die stad Susan ’n week lank in die paleistuin onthaal. Dit het nie saak gemaak of hulle belangrik was of nie, ryk of arm, almal is uitgenooi. Die binnehof was baie mooi versier. Blou en wit linnedoeke is met pers linte aan silwerringe teen die marmerpilare vasgemaak. Goue en silwerrusbanke is oral in die binnehof neergesit op plaveisel van baie kosbare stene en klippe. Die wyn is in goue bekers bedien wat ryklik versier was. Die koning het ook gesorg dat daar nie ’n tekort aan wyn uit sy kelder was nie. Die enigste reël wat by die koning se fees gegeld het, was dat niemand gedwing moes word om meer of minder te drink as wat hy wou nie. Die paleispersoneel moes elkeen toelaat om self te besluit. Terselfdertyd het koningin Vasti ook die vroue in die paleis onthaal. Op die sewende dag van die onthaal het die koning, wat toe al redelik dronk was, sewe van sy paleisbeamptes geroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas. Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te bring. Die koningin was ’n pragtige vrou en die koning wou graag by al sy hoë amptenare en gaste met haar skoonheid spog. Toe die beamptes vir koningin Vasti gaan sê dat sy na die koning toe moet kom, het sy geweier. Dit het die koning woedend gemaak. Hy het toe, soos sy gebruik in moeilike situasies was, raad gevra by sy adviseurs wat al die Persiese wette en gebruike geken het. Die persone by wie hy die meeste van die tyd raad gevra het, was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan, die sewe hoofamptenare van Persië en Medië. Hulle het direkte toegang tot die koning gehad en ook die belangrikste posisies in sy koninkryk beklee. Hy sê toe vir hulle: “Ek, koning Ahasveros, het my amptenare na koningin Vasti toe gestuur met ’n opdrag, en sy het geweier om dit uit voer! Wat moet ons volgens die wet met haar doen?” Toe sê Memukan vir die koning en sy hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net die koning beledig nie, maar ook elke amptenaar en elke mens in die koninkryk. Sodra die vroue hiervan hoor, sal hulle almal begin neersien op hulle mans. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het koningin Vasti beveel om na hom toe te kom en sy het geweier.’ Voor hierdie dag verby is, sal die vooraanstaande vroue van Persië en Medië van die optrede van die koningin hoor en presies net so met hulle mans begin praat. Dit sal die mans baie kwaad maak. U moet dalk daaraan dink om ’n koninklike bevel te gee dat Vasti nie meer by u welkom is nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse sodat dit nie herroep kan word nie. Soek dan vir u ’n ander koningin wat haar beter as Vasti sal gedra. Wanneer hierdie bevel van die koning dan oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal al die vroue weer hulle mans, of hulle nou belangrik of onbelangrik is, met respek behandel.” Die koning en sy hoë amptenare het van Memukan se voorstel gehou en besluit om dit te doen. Die koning stuur toe ’n amptelike brief na elke provinsie wat onder sy beheer was. Dit was in hulle eie taal geskryf sodat hulle dit kon verstaan. In hierdie brief het hy opdrag gegee dat elke man die leiding moet neem in sy huis en dat hy die finale sê het. Later, toe Ahasveros se woede bedaar het, het hy weer aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het, asook oor wat hy oor haar besluit het. ’n Paar van die koning se persoonlike amptenare maak toe ’n voorstel: “Hoekom laat soek die koning nie vir hom ’n klomp mooi jongmeisies in sy koninkryk nie? Stel in elke provinsie amptenare aan en laat hulle al die mooi jongmeisies na die vrouekwartiere in Susan bring. Laat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer is van die vroue in die paleis, vir hulle sorg. Hier moet hulle skoonheidsbehandeling ondergaan, en dan moet die meisie van wie u die meeste hou, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het van die voorstel gehou en hulle raad gevolg. Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak. Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is. Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg. Op Mordegai se advies het Ester vir niemand iets van haar agtergrond of herkoms vertel nie. Mordegai het elke dag by die binnehof van die vrouekwartiere ’n draai gemaak om te hoor hoe dit met Ester gaan en wat van haar gaan word. Die skoonheidsbehandeling wat die meisies moes ondergaan, het twaalf maande geduur. Hulle is vir ses maande met mirreolie behandel en daarna vir nog ses maande met spesiale kruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna het elke meisie ’n beurt gekry om ’n nag by koning Ahasveros deur te bring. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om na die koning toe te gaan, kon sy enige klere en juwele kies, net wat sy wou, om haar skoonheid nog verder te beklemtoon om die koning te beïndruk. Sy is in die aand na die koning toe gevat. Die volgende môre is sy dan na ’n ander deel van die vrouekwartiere toe teruggeneem waar die koning se byvroue onder die toesig van Saägas gebly het. Hier sou sy nou vir die res van haar lewe bly en nooit weer na die koning se slaapkamer toe gaan nie, tensy hy so baie van haar gehou het dat hy spesifiek vir haar op haar naam laat vra het. Toe Ester, die dogter van Abigajil en die niggie van Mordegai, wat haar as sy eie dogter aangeneem het, se beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks anders aangetrek as wat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer van die vrouekwartiere was, aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, het haar bewonder. In die tiende maand, genoem die maand Tebet, en in die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros, is Ester na hom toe geneem in sy paleis. Die koning het meer van haar gehou as van enige van die ander meisies. Hy was so beïndruk met haar dat hy haar dadelik as koningin in Vasti se plek gekroon het. Om hierdie geleentheid te vier het die koning ’n groot onthaal ter ere van Ester gegee waarheen hy al sy hoë amptenare en ander mense wat in sy diens was, uitgenooi het. Hy het dit ook ’n openbare vakansiedag gemaak en geskenke aan die mense uitgedeel. Nadat al die jongmeisies na die ander deel van die vrouekwartiere toe is, is Mordegai in ’n administratiewe posisie aangestel. Ester het nog steeds niks oor haar agtergrond of haar herkoms gesê nie. Sy het nog na Mordegai geluister soos voorheen toe sy deel was van sy huisgesin. Gedurende die tyd wat Mordegai in diens van die koning was, het Bigtan en Teres, twee van die koning se persoonlike lyfwagte, kwaad geword vir koning Ahasveros en planne beraam om hom te vermoor. Mordegai het daarvan te hore gekom en dit vir koningin Ester vertel. Ester het op haar beurt vir die koning vertel wat Mordegai uitgevind het. ’n Ondersoek het toe aan die lig gebring dat Mordegai die waarheid praat. Die twee skuldiges is dadelik gehang. Die koning het opdrag gegee dat hierdie gebeurtenis amptelik as deel van die geskiedenis van sy regeringstyd opgeteken moes word. ’n Ruk hierna het koning Ahasveros ’n man met die naam Haman tot eerste minister bevorder. Hy was tweede in bevel van die land, net onder die koning self. Haman was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. Op bevel van die koning moes al sy paleisamptenare voor Haman buig om hulle respek vir hom te wys. Almal van hulle het dit gedoen, behalwe Mordegai. Hy het geweier. Die ander amptenare wou toe by Mordegai weet waarom hy weier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle het elke dag met hom daaroor gepraat. Toe hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle vir Haman daarvan vertel. Hulle wou sien of Haman iets daaraan sou doen, want Mordegai het intussen vir hulle vertel dat hy ’n Jood is. Haman was woedend toe hy agterkom dat Mordegai nie respek het vir hom nie. Daarom het hy besluit om nie net vir Mordegai te straf nie, maar om sommer al die Jode in die Persiese ryk uit te roei. In die eerste maand van koning Ahasveros se twaalfde regeringsjaar, dit is die maand Nisan, het Haman opdrag gegee dat hulle lootjies moes trek (of soos hulle dit genoem het, Purim) om ’n geskikte datum te kry waarop hulle die Jode kon uitroei. Hulle het toe op 7 Maart van die volgende jaar besluit. Haman sê toe vir die koning: “Daar is ’n sekere volk wat reg deur u ryk in al die provinsies versprei is. Hulle gebruike en gewoontes verskil van al die ander volke s’n. Om die waarheid te sê, hulle weier selfs om u wette te aanvaar. Ek dink nie dit is in u beste belang om hulle so te laat aangaan nie. As u dit goedvind, vaardig ’n koninklike bevel uit dat hulle uitgeroei moet word. As u dit doen, sal ek 342 ton silwer vir die ontvangers van inkomste gee om in die koning se skatkis te sit.” Die koning het ingestem, sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman, die vyand van die Jode, gegee. Hy was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. “Hou die geld,” het hy gesê, “en doen met die Jode net wat jy wil.” Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan. Die briewe is in die naam van koning Ahasveros geskryf en met sy seëlring verseël as ’n teken dat die briewe eg was. Die briewe is toe deur boodskappers na elke provinsie toe geneem met die opdrag om al die Jode uit te roei, oud en jonk, vroue en kinders, almal voor die voet. Hierdie slagting is beplan vir 7 Maart die volgende jaar. Diegene wat die Jode doodgemaak het, het ook die reg gehad om al hulle besittings vir hulleself te vat. Elke provinsie moes ’n afskrif van die brief kry sodat almal dit kon lees en reg kon wees op die beplande dag. Op die koning se bevel is die brief in die hoofstad, Susan, gelees. Daarna is die boodskappers haastig met die briewe weg na die provinsies toe. Die koning en Haman het dit toe met ’n drankie gaan vier, maar die stad self was verbaas en verward hieroor. Toe Mordegai hoor van alles wat gebeur het, was hy baie hartseer en ontsteld. Hy het begrafnisklere aangetrek en al huilend deur die stad geloop, tot by die ingang van die paleis. Daar het hy bly staan, want volgens die reël kon niemand met begrafnisklere aan daar ingaan nie. Toe die nuus van die koning se opdrag in die provinsies bekend geword het, het die Jode begin treur. Hulle het gevas en gehuil en gekla en baie het met begrafnisklere rondgeloop. Toe koningin Ester se kamerpersoneel en paleisbeamptes vir haar van Mordegai kom vertel, was sy baie omgekrap. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy begrafnisklere aan trek, maar hy wou nie. Ester laat roep toe een van haar paleisbeamptes met die naam Hatak. Sy stuur hom na Mordegai toe om uit te vind wat aan die gang was en waarom hy begrafnisklere dra. Hatak is toe uit na Mordegai toe waar hy op die binneplein by die ingang van die paleis gestaan het. Mordegai het Hatak in sy vertroue geneem en hom die hele storie vertel. Ook van die groot hoeveelheid geld wat Haman bereid was om die koning te betaal as hy die Jode kon doodmaak. Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die koninklike bevel wat in Susan uitgereik is, wat bepaal het dat die Jode doodgemaak moes word. Mordegai het hom toe gevra om dit na Ester toe te vat en die hele situasie aan haar te verduidelik met die opdrag dat sy na die koning toe moes gaan en by hom moes gaan pleit vir genade vir haar mense. Hatak het dit gedoen. Ester het hom toe weer gestuur met die volgende boodskap vir Mordegai: “Almal weet tog dat daar ’n wet is wat bepaal dat as iemand ongenooid na die koning toe gaan, daardie persoon doodgemaak moet word. Al wanneer jy na die koning toe mag gaan, is wanneer hy sy goue septer na jou toe uitsteek as ’n teken dat hy jou roep. Wat my betref, het die koning my in elk geval ’n maand laas na hom toe laat kom.” Toe Mordegai Ester se boodskap ontvang, het hy haar gewaarsku: “Moenie dink omdat jy in die paleis bly, jy is enigsins veiliger as enige ander Jood nie. As jy in ’n krisistyd soos hierdie stilbly, kom daar dalk van ’n ander kant af hulp vir die Jode. Hulle word dalk gered, maar dan sal jy en jou familie as verraaiers beskou word. Dan sal julle nie meer welkom wees by julle eie mense nie. Wie weet, dalk moes jy juis koningin word om jou volk te help.” Daarop het Ester vir Mordegai laat weet: “Gaan maak al die Jode in Susan bymekaar en vas ter wille van my. Vir drie volle dae moet julle niks eet of drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal dit ook doen. Daarna, al is dit onwettig, sal ek na die koning toe gaan. En as dit dan my einde moet wees, dan is dit goed so.” Mordegai is toe daar weg en het gaan doen wat Ester gevra het. Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die voorportaal van die paleis regoor die troonsaal van die koning gaan staan. Die koning het regoor die ingang op sy troon gesit. Toe hy koningin Ester daar in die voorportaal sien staan, was hy so oorrompel deur haar skoonheid dat hy dadelik sy goue septer na haar toe uitgesteek het. Ester het toe nader gekom en aan die punt van die septer geraak. “Wat is dit, koningin Ester?” wou die koning weet. “Sê vir my wat jy wil hê en ek sal dit vir jou gee, al is dit ook die helfte van my koninkryk.” “As dit met u reg is,” sê sy toe, “wil ek graag hê dat u en Haman vanaand my gaste sal wees by ’n ete wat ek vir u voorberei het.” Toe sê die koning: “Gaan haal dadelik vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” So is die koning en Haman toe daar weg na Ester se ete toe. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat jy wil hê en jy kan dit kry, al is dit ook die helfte van my koninkryk.” Toe sê Ester: “Wat ek graag wil hê, dit is nou te sê as die koning dit wil doen, is dat u en Haman môre weer my gaste sal wees by ’n ete. By daardie ete sal ek vir u sê wat ek wil hê.” Haman is vrolik en opgeruimd daar weg. Maar toe hy vir Mordegai by die hek van die paleis sien sit en dié weer nie opstaan om hom te groet nie, was hy woedend. Haman het hom egter ingehou en huis toe gegaan. Daar aangekom, het hy sy vriende en sy vrou, Seres, geroep en by hulle gespog oor hoe ryk hy was en hoe baie kinders hy gehad het. Hy het ook gespog oor die feit dat die koning hom eerste minister gemaak het en dat hy baie belangriker was as al die ander amptenare. “En wat meer is,” spog Haman toe verder, “koningin Ester het ’n ete spesiaal net vir my en die koning gegee. En sy het my uitgenooi om môre weer saam met haar en die koning te eet. Maar tog beteken dit alles vir my niks terwyl daardie Jood Mordegai nog by die paleis se ingang sit nie.” Sy vrou, Seres, en sy vriende gee hom toe ’n plan: “Hoekom laat bou jy nie ’n 23 meter hoë galg nie? Dan kan jy môreoggend vir die koning vra om Mordegai te laat ophang. Daarna kan jy sonder probleme saam met die koning na die ete toe gaan.” Haman het van die idee gehou en die galg laat bou. Daardie selfde nag het die koning gesukkel om aan die slaap te raak. Hy laat haal toe die geskiedenisboeke wat alles oor sy koninkryk vertel en alles wat hy al gedoen het, en laat sy personeel dit vir hom voorlees. Toevallig lees hulle toe vir hom die gedeelte waar Mordegai te hore gekom het van die komplot van Bigtan en Teres, die twee paleisamptenare wat beplan het om koning Ahasveros dood te maak. “Het ons Mordegai ooit hiervoor beloon of aan hom eer bewys?” wou die koning weet. “Nee,” het sy kamerpersoneel geantwoord. “Hy het niks gekry nie.” “Wie is daar in die voorportaal?” wou die koning weet. Want op daardie oomblik het Haman in die voorportaal van die paleis aangekom om vir die koning te kom vra om Mordegai aan die galg, wat hy klaar gebou het, te laat ophang. “Dis Haman wat daar staan,” sê die paleisamptenare toe. “Nou laat hom inkom” sê die koning. Nadat Haman ingekom het, vra die koning vir hom: “Daar is iemand wat ek wil vereer. Wat moet ek vir hierdie man doen?” Haman dink toe so by homself: “Aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?” [7-8] Daarom sê hy toe: “Laat hulle vir hom ’n koninklike kleed bring soos dié wat die koning dra en ’n perd waarop die koning self al gery het met die koninklike embleem op sy kop. *** Kry dan een van u hoogste amptenare om die kleed vir hom om te hang en hom op die perd oor die stadsplein te lei. So ver hulle gaan, moet hy dan uitroep: So lyk dit as die koning aan iemand eer bewys!” Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en gaan gee dit vir Mordegai, die Jood wat daar by die hek van die paleis sit. Jy moet alles doen wat jy voorgestel het.” Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed om Mordegai gehang, hom op die perd laat klim en hom toe oor die stadsplein gelei. So ver hulle gegaan het, het hy uitgeroep: “So lyk dit as die koning aan iemand eer bewys!” Daarna het Mordegai teruggegaan na die paleishek toe. Haman is egter hoogs ontsteld en vernederd terug na sy eie huis. Daar het hy vir sy vrou, Seres, en sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Toe het sy en sy raadgewers vir hom gesê: “Aangesien Mordegai, die man wat jou verneder het, ’n Jood is, sal jou planne teen hom nie slaag nie. Hy gaan beslis jou ondergang beteken.” Hulle was nog besig om te praat toe die paleisbeamptes haastig inkom om Haman te kom haal vir Ester se ete. [1-2] Die koning en Haman het toe by Ester gaan eet. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, het die koning weer vir haar gevra: “Koningin Ester, wat is dit wat jy van my wil hê? Sê vir my en ek sal dit vir jou gee, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.” *** Koningin Ester antwoord toe: “As dit vir die koning reg is, wil ek graag die volgende versoek rig: Laat my en my mense asseblief toe om te bly lewe. Want u sien, ek en my mense is verkoop om voor die voet doodgemaak en uitgeroei te word. As ons net as slawe verkoop was, sou ek u nie daarmee gepla het nie, want dit sou nie vir die koning so ’n verlies gewees het nie. Maar om uitgeroei te word!” “Wie wil so iets doen?” wou koning Ahasveros weet. “Waar is hierdie man?” Toe sê Ester: “Ons vyand, die een wat ons vervolg, is hierdie slegte man Haman.” Haman het hom asvaal geskrik en angsbevange na die koning en Ester gestaar. Die koning het woedend van die tafel af opgestaan en uitgestorm tuin toe. Haman het geweet dat die koning van plan was om hom hiervoor te straf. Daarom het hy agtergebly om by Ester te pleit vir sy lewe. Uit wanhoop het Haman neergeval op die rusbank waarop Ester gesit het. Op daardie selfde oomblik het die koning teruggekom van die tuin af. Toe hy dit sien, het hy woedend uitgeroep: “Wil jy nog die koningin ook hier voor my oë in my paleis aanrand?” Die koning se woorde was skaars koud, toe gryp sy paleisamptenare vir Haman en trek ’n doek oor sy kop. Daarmee was dit duidelik dat sy lot beseël was. Toe sê Garbona, een van die koning se paleisbeamptes: “Haman het mos al klaar ’n galg van 23 meter hoog by sy huis laat maak. Hy was van plan om vir Mordegai, die man wat die koning se lewe gered het, daaraan op te hang.” Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!” Hulle het Haman toe aan die galg opgehang wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die koning se bui bedaar. Op daardie selfde dag het koning Ahasveros al Haman, wat die Jode se vyand was, se eiendom vir koningin Ester gegee. Ester het ook vir die koning vertel dat Mordegai familie van haar was. Die koning het Mordegai na hom toe laat kom. Die koning het toe sy seëlring, wat hy van Haman af teruggevat het, afgehaal en dit vir Mordegai gegee. Ester het vir Mordegai beheer gegee oor al Haman se bates. Ester het weer met die koning gaan praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en by hom gehuil. Sy het hom gesmeek om die slegte plan van Haman, die afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, teen die Jode stop te sit. Die koning het weereens sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy staan toe op en sê vir hom: “As dit met die koning reg is en as u van my hou, skryf asseblief ’n koninklike brief om Haman, die seun van Hammedata en ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, se opdragte te stop. Hy het beveel dat die Jode in al die provinsies doodgemaak moet word. Hoe sou ek dit kon verdra om te sien hoe my volk deur so ’n ramp getref word en my eie familie uitgeroei word?” Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester en vir Mordegai die Jood: “Kyk, ek het Haman laat ophang oor sy komplot teen die Jode en al sy bates vir Ester gegee. Skryf julle nou ’n brief aan die Jode, soos julle goeddink, en stuur dit aan hulle in my naam en verseël dit met my seëlring. Onthou: ’n brief wat in die koning se naam geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan nie teruggetrek word nie.” Hulle het toe dadelik die koning se skrywers laat kom. Dit was 25 Junie. Mordegai het briewe gedikteer vir al die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en al die beamptes in die 127 provinsies wat vanaf Indië tot by Soedan gestrek het. Die briewe is aan elke provinsie in hulle eie taal en skrif gestuur sodat hulle dit kon verstaan. Ook die Jode het hulle briewe in hulle eie taal en skrif gekry. Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël. Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het. Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig. Hulle het nou die reg gehad om enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aangeval het voor die voet dood te maak, vroue en kinders inkluis. Hulle kon selfs hulle aanvallers se besittings as buit vir hulleself vat. Die dag waarop hierdie koninklike opdrag in al die provinsies in werking sou tree, was 7 Maart die volgende jaar. Hierdie proklamasie moes in elke provinsie as ’n wet afgekondig word en almal moes daarvan weet. Dit sou verseker dat die Jode gereed sou wees om wraak te neem op hulle vyande wanneer daardie dag aanbreek. Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig. Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier. Die Jode was opgeruimd en vrolik. Hulle het gevoel dat hulle weer waardige mense was. In elke stad en provinsie waar die koning se proklamasie uitgevaardig is, het die Jode gejuig en reg deur die dag feesgevier. Baie mense het by die Jode aangesluit omdat hulle bang was vir wat die Jode nou aan hulle sou doen. Toe het 7 Maart van die volgende jaar aangebreek, die dag waarop die koninklike proklamasie in werking moes tree en waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle in hulle mag te kry. Maar op dié dag het presies die teenoorgestelde gebeur. Dit was nou die Jode wat hulle vyande oorweldig het. Hulle het in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros se ryk bymekaargekom om hulleself te verdedig teen enigiemand wat hulle kwaad probeer aandoen het. Maar niemand wou so ’n kans waag nie, want almal was te bang vir hulle. Om die waarheid te sê, al die bestuurders van die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander mense in die koning se diens het hulle eerder gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai. Want Mordegai het alreeds ’n hoë posisie in die paleis beklee en het by die dag magtiger geword. Maar die Jode het hulle teëstanders met die swaard uitgeroei. Hulle het hulle vyande doodgemaak en vermorsel. Met almal wat hulle gehaat het, het hulle gedoen net wat hulle wou. In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak. [7-10] Onder hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, die vyand van die Jode: Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Maar die Jode het nie hierdie mense se besittings gevat nie. *** *** *** Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.” Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.” Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel. Op 8 Maart het die Jode van Susan weer bymekaargekom en nog 300 mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het weereens nie hierdie mense se besittings gevat nie. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Hulle het goed daarin geslaag, want hulle het 75 000 van hulle doodgemaak, maar nie hulle besittings gevat nie. Dit het op 7 Maart gebeur, maar die volgende dag het hulle opgehou om mense dood te maak. Hulle het vrolik feesgevier. Die Jode in die stad Susan het egter op 7 en 8 Maart nog teen hulle vyande geveg. Hulle het eers op die negende Maart opgehou en dit toe as ’n feesdag vol vreugde gevier. Daarom vier die Jode wat op die platteland bly, hierdie feesdag nog steeds op die agtste Maart. Dit is ’n vrolike fees waarop hulle vir mekaar lekkernye en kos stuur. Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee. Die Jode het van Mordegai se idee gehou en dit as ’n jaarlikse fees ingestel. Haman, die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete en ’n vyand van die Jode, het die lot gewerp (ook genoem die Pur) om te bepaal watter dag hy sou gebruik om die Jode te vernietig. Hy was van plan om hulle totaal uit te roei. Maar toe die koning daarvan te hore kom, het hy ’n skriftelike opdrag gegee dat Haman en sy seuns self die slagoffers moes word van sy bose plan. So het hulle almal uiteindelik in die openbaar aan die galg gesterf. Daarom word hierdie fees die Purimfees genoem, want dit word afgelei van die woord “Pur”. Na aanleiding van alles wat Mordegai in sy brief geskryf het en alles wat hulle self ervaar het, het die Jode besluit dat hierdie twee dae deur hulle en hulle nageslagte, asook deur mense uit ander volke wat by hulle aangesluit het, as feesdae gevier moes word. Hulle het besluit om hulle streng te hou by die reëls en voorskrifte van die fees. Hulle het beveel dat elke Joodse familie van elke toekomstige geslag in elke provinsie en in elke stad hierdie twee dae moes herdenk en die Purimfees vir altyd moes vier. Toe het koningin Ester, die dogter van Abigajil en die Jood Mordegai, ook ’n brief geskryf waarin sy die brief wat Mordegai vroeër geskryf het, ondersteun. Op hierdie manier het sy die Purimfees bekragtig. Ander briewe met wense van vrede en voorspoed is ook aan die Jode in die 127 provinsies in die ryk van koning Ahasveros gestuur. Hierdie briewe het hulle en hulle nageslagte aangemoedig om die Purimfees te hou soos die Jood Mordegai en koningin Ester dit bepaal het. Hulle moes dit net so getrou en noukeurig nakom soos hulle met die vasdae en routye gemaak het. Ester se voorskrifte oor die Purimfees is toe in ’n boek neergeskryf. Koning Ahasveros het sy hele ryk se mense, van die veraf kusgebiede tot by dié wat in die binneland gebly het, verplig om harde arbeid met hulle hande te verrig. Al sy prestasies en die verhaal van Mordegai se roem is opgeteken in die geskiedenisverhale van die konings van Medië en Persië. Mordegai die Jood was tweede in bevel. Net koning Ahasveros het meer mag as hy gehad. Onder sy mede-Jode was hy gewild en is hy as ’n held beskou. Hy het sy bes gedoen om hulle armoede weg te vat en ’n toekoms vir hulle nageslag te verseker. Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste. Job se seuns het beurte gemaak om by hulle huise partytjies te hou. As hulle so ’n partytjie gehou het, het hulle hulle drie susters genooi om saam te kom eet en drink. Hierdie partytjies het partykeer ’n paar dae aangehou. Ná so ’n fees was Job altyd bekommerd dat sy kinders dalk iets verkeerds gedoen het. Hy was bang dat hulle dalk iets gedoen of gedink het wat God sou kon beledig. Hy het hulle laat haal en dan gesorg dat hulle regmaak teenoor die Here wat verkeerd is. Hy sou vroeg in die môre opstaan en namens elkeen van sy kinders ’n offer aan die Here bring. Hy wou hulle posisie reg hou by die Here. Job het dit na elke partytjie gedoen. Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.” Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan. Op ’n dag was Job se kinders weer bymekaar in die oudste seun se huis. Hulle het saam geëet en wyn gedrink. Terwyl hulle besig was om so saam te kuier, het ’n boodskapper by Job se huis aangekom. Hy het gesê: “Ons was besig om die land met osse te ploeg. Die donkies het daar by ons gestaan en wei. Die volgende oomblik het die Sabeërs op ons toegesak. Hulle het die diere gesteel en die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat weggekom het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Terwyl die man nog besig was om te praat, het daar ’n tweede boodskapper met nog nuus aangekom. Hy het gesê: “Die weerlig het geslaan en al die skape en die wagters is raak geslaan. Hulle is op die plek dood. Ek is die enigste een wat oorleef het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Terwyl hierdie boodskapper nog besig was om te praat, het ’n derde een met nuus opgedaag. Hy het gesê: “Die Babiloniërs het met drie bendes toegeslaan. Hulle het die kamele gesteel en u oppassers doodgemaak. Ek is die enigste een wat ontsnap het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Hierdie derde boodskapper was nog besig om te praat toe nog een met nuus daar aankom. Hy het gesê: “U kinders was besig om saam te eet en te kuier in u oudste seun se huis toe ’n ramp hulle tref. ’n Baie sterk wind het van die woestyn af gewaai. Dit het die huis met mening van alle kante af getref. Die wind het die huis omgewaai en dit het bo-op u kinders geval. Hulle is almal dood. Ek is die enigste een wat oor is om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Toe Job die slegte nuus hoor, het hy begin rou. Hy het opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook al sy hare afgesny. Toe het hy neergeval en met sy gesig teen die grond gaan lê. Hy het gesê: “Toe ek gebore is, het ek met niks in hierdie wêreld ingekom nie. As ek uit hierdie wêreld uitgaan, sal ek weer sonder enigiets weggaan. Wat ek het, het die Here vir my gegee. Die Here het dit ook weer weggevat. Die Here moet geprys word!” Ten spyte van alles wat gebeur het, het Job nie verkeerd gedoen nie. Hy het God ook nie blameer vir wat gebeur het nie. Op ’n dag het die inwoners van die hemel weer na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg. Jy het My nou wel oorreed om hom sonder enige rede kwaad aan te doen, maar hy bly nog steeds by wat hy glo. Hy is nie van koers af gegooi nie.” Die Satan het die Here geantwoord: “Dit bewys niks nie. Hy leef reg voor U net omdat dit hom pas. ’n Mens sal enigiets prysgee as dit waarborg dat jy sal bly lewe. Maar vat net sy gesondheid weg en hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het vir Satan toegegee: “Nou maar maak dan met Job soos jy wil, maar op een voorwaarde: jy spaar sy lewe!” Satan is toe daar weg. Hy het Job in die hande gekry en hom siek gemaak. Sy hele lyf, van sy kop tot sy tone, het vol sere geword. Job het eenkant in die as gaan sit. Hy het ’n potskerf gevat en sy vel daarmee geskraap. Sy vrou het met hom gepraat en gevra: “Bly jy nog steeds by wat jy glo reg is, Job? Hoekom vloek jy nie die Here en kry klaar en gaan dan dood nie.” Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat net mooi niks verstaan nie. As die Here vir ons goeie dinge gee, vat ons dit sonder om twee keer daaroor te dink. Dink jy dan nie dat ons dit moet aanvaar as Hy ook slegte dinge met ons laat gebeur nie?” Al het al hierdie slegte dinge met Job gebeur, het hy steeds nie iets verkeerds gesê nie. Job het drie vriende gehad wat vir hom kom kuier het. Hulle was Elifas, wat uit Teman gekom het, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het gehoor van die slegte dinge wat Job oorgekom het. Hulle het op ’n tyd besluit en saam vir Job kom kuier. Hulle wou graag vir hom kom sê hoe jammer hulle is oor wat met hom gebeur het en hom kom moed inpraat. Toe hulle Job op ’n afstand sien sit, kon hulle hom skaars herken, in so ’n toestand was hy. Hulle het bitterlik begin huil. Om te wys dat dit vir hulle soos dood was, het hulle hulle klere geskeur en as op hulle koppe gegooi. Hulle het toe vir sewe dae en nagte by hom op die grond gaan sit. Nie een van hulle het ’n woord gesê nie: hulle het tjoepstil gebly. Hulle kon sien dat sy pyn en lyding bitter groot was. Dit was beter om nie te praat nie. Toe Job uiteindelik begin praat, wou hy weet hoekom hy ooit gebore is. Hy het gesê: “Ek moes nooit gebore gewees het nie. Ek moes nooit eens begin bestaan het nie. Die dag wat my lewe begin het, is ’n swart dag. God moet Hom nie eens aan dié dag steur nie. Nie eers ’n skrefie lig moet maak dat mense weet van so ’n dag nie. Laat donkerte my geboortedag insluk. Laat donker wolke dit toemaak. Die donkerte moet die lig wegdryf. Die nag wat my lewe begin het, moet so verdwyn asof daar nooit eers so ’n nag bestaan het nie. Dit moet wees asof daar nooit so ’n dag in ’n spesifieke jaar of maand was nie. Die dag moet nie eers getel word nie. Dit sou beter gewees het as ek nooit daardie nag gebore is nie. Niemand moes bly gewees het omdat ek gebore is nie. Daar is mense wat weet hoe om vloeke uit te roep. Hulle is die mense wat ook weet hoe om die seemonster op te roep. Laat hulle my geboorte vervloek! Mag die môrester glad nie skyn nie. Mag daar niks kom van die hoop dat die dagbreek na die nag sal kom nie. Dit is ’n groot jammerte dat ek daardie nag gebore is. Nou sit ek met hierdie groot ellende in my lewe.” Job het verder gegaan en gesê: “Hoekom is ek nie doodgebore nie? Hoekom het my ma my laat lewe en my versorg? Hoekom het sy my melk gegee om te kon lewe? As ek by my geboorte dood is, sou ek nou geslaap het. Ek sou rus en vrede gehad het. Ek sou nou saam met belangrike mense soos konings en beroemde leiers gerus het. Ek sou gerus het saam met ryk prinse wat huise gehad het met baie goud en silwer in. Hoekom was ek nie maar ’n miskraam nie? Dan het ek nooit eers begin lewe nie. Slegte mense hou op om kwaad te doen as hulle dood is en moeë mense kry kans om te rus. Selfs mense wat gevangenes is, ontspan as hulle dood is. Die bewaarder verskree hulle nie daar nie. Daar is ryk en arm mense gelyk. Daar is ’n werker vry van sy baas. “Hoekom laat die Here mense lewe wat swaarkry? Hoekom lewe mense wat verbitterd is? Hulle wens hulle kan doodgaan, maar dit gebeur nie. Hulle wil so graag doodgaan dat dit erger is as iemand wat fanaties na ’n skat soek. Hulle kan nie aan iets dink wat hulle blyer sal maak as om dood en begrawe te wees nie. Hoekom moet ’n mens lewe as dit lyk of daar nie ’n toekoms is nie en jy deur God van alles afgesny is? Ek sug so baie, dit is soos my kos wat ek eet. Ek leef daarvan. My gekla is soos water wat net aanhou loop. Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur. Ek het nie kalmte en vrede nie. In plaas daarvan dat ek rustig voel, loop alles net verkeerd.” Toe het Elifas, wat van Teman af kom, Job geantwoord: “Sal jy geduldig met my wees en my toelaat om te praat? ’n Mens kan nie eintlik jou mond hou nie, weet jy! Jy het self al baie mense geleer en reggehelp. Jy het ook al mense wat moedeloos was, gehelp om weer moed te skep. Jy het ook mense wat wou gaan lê, aangemoedig om vas te byt. Dié wat gevoel het dat hulle knieë onder hulle knak, het jy gehelp om nuwe energie te kry en aan te gaan. Maar noudat die probleme na jou kant toe gekom het, kan jy dit nie verdra nie. Noudat dit jou raak, is jy platgeslaan. Gee jou geloof in die Here nie vir jou die vertroue wat jy nodig het nie? Jy het altyd reg gelewe omdat jy die Here eer. Dit behoort mos vir jou hoop te gee.” Elifas het verder gesê: “Dink ’n bietjie hieraan: Is daar enigiemand wat onskuldig was en ondergegaan het? Noem vir my ’n geval waar mense doodgegaan het wat reg geleef het. Wat ek in die lewe geleer het, is dat mense wat verkeerde dinge beplan en moeilikheid maak, dit net so sal terugkry. As God in sy woede sy asem oor hulle uitblaas, is dit verby met hulle. Hulle gaan net so dood! Al brul hierdie mense soos wrede leeus, sal hulle tande gebreek word. Hierdie mense wat so verkeerd doen, sal soos leeus wees wat nie ’n prooi kry om dood te maak nie. Hulle sal van die honger doodgaan en hulle kleintjies sal alleen agterbly.” Verder het Elifas gesê: “Iemand het iets in die geheim in my oor gefluister. Dit het in die nag gebeur toe almal al geslaap het. Dit was soos ’n gesig wat ek gesien het. Angs het my beetgepak. Ek het geskud en gebewe so bang was ek. Iets soos wind of ’n gees het liggies voor my gesig verbygegaan. Dit het my hare laat regop staan. Dit het later opgehou, maar ek kon nie uitmaak wie dit was nie. Daar was net ’n gedaante voor my. In die stilte het ek ’n stem gehoor wat sê: ‘Kan ’n gewone mens ooit regtig alles reg doen in die oë van die Here? Of kan ’n mens ooit sonder enige foute wees voor sy Maker? Die Here kan nie eers sy eie werkers vertrou nie. Hy sien selfs die foute raak wat sy engele maak. Hoeveel minder kan Hy mense vertrou wat van klei gemaak is! En klei is eintlik niks anders as stof nie. Hulle kan soos motte platgedruk word. Hulle kan in die môre nog springlewendig wees, maar teen die aand se kant dood wees. Niemand sal hulle eers mis nie. So ’n mens wat doodgaan, is soos ’n tent wat platval as die toue uitgeruk word. En dan gaan hulle dood sonder dat hulle insig en kennis kon kry.’” Elifas het verder gesê: “Al roep jy dat iemand jou moet kom help, niemand sal luister nie. By watter engele sal jy hulp soek? ’n Mens wat ’n wrok dra, is eintlik dom. Dit maak jou op die ou einde dood. Jaloesie doen dieselfde met jou. Ek het al gesien hoedat dom mense dink alles is mooi en reg en dan tref ’n ramp skielik hulle huis. Hulle kinders bly agter en daar is niemand om te kyk of hulle veilig is nie. En as hulle in die hof beland, is daar niemand wat hulle saak verdedig nie. Honger mense steel die dom mens se oes. Hulle haal dit selfs onder die doringtakke uit waarmee dit toegepak is. Daar is gierige mense wat graag hulle rykdom wil hê. Swaarkry is mos nie iets wat uit die stof van die aarde uit opkom nie. Net so kom moeilikheid ook nie uit die grond uit op nie. Vonke spat altyd by ’n vuur. Net so seker as wat dit gebeur, word ’n mens gebore om moeilikheid te kry.” Elifas het aangegaan en gesê: “Wat ek sou gedoen het as ek jy was, Job: ek sou na die Here toe gaan en my saak by Hom stel. Hy doen wonderlike dinge wat eintlik te groot is vir ons om te verstaan. Hy doen meer wonderwerke as waarmee ons ooit rekening kan hou. Hy laat dit reën op die aarde en sorg dat die velde water kry. Hy maak dit moontlik vir die arm mense om hulle kop op te tel. Hy help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan. Hy laat die planne van skelm mense skeefloop. Van al hulle pogings kom net mooi niks. Hy laat mense wat dink dat hulle baie slim is en ander kan uitoorlê, in hulle eie strikke trap. Hy steek ’n stokkie voor al hulle slinkse plannetjies. Donkerte oorval hulle helder oordag. In die middag tas hulle in die donker rond asof dit alreeds nag is. Hy red arm mense uit die dood. Hy maak hulle vry van mense met mag en invloed. Die Here gee vir die armes nuwe hoop. Hy stop mense om ander kwaad aan te doen. “’n Mens moet bly wees as God jou reghelp. Daarom moet jy dit nie ligtelik opvat as Hy jou straf nie. Dit is Hy wat die wonde veroorsaak, maar dit is ook Hy wat die wonde weer versorg en verbind. Hy deel die houe uit, maar sy hande maak ook weer die wonde gesond. Hy sal jou oor en oor uit die moeilikheid red. Hy sal sorg dat jy nie doodgaan as daar nie meer kos is om te eet nie. Hy sal ook kyk dat jy nie in ’n oorlog doodgaan nie. Hy sal jou beskerm teen mense se geskinder oor jou. Jy hoef ook nie bang te wees as rampe jou tref nie. Jy kan gerus maar ontspan oor rampe en hongersnood. Jy hoef ook nie bang te wees vir die wilde diere nie. Jy sal gemaklik wees met wat in die natuur aangaan. Die wilde diere sal hulle nie eers aan jou steur nie. Jy kan ook seker wees dat jou huis veilig sal wees. Al jou vee sal net so wees soos dit was. Niks sal weg wees nie. Jy sal baie kinders hê. Jou nageslag sal so baie wees soos al die gras wat op die aarde is. Jy sal lank lewe en oud word. Jy sal soos koring eers in die ryp tyd van jou lewe geoes word. Job, ons het al hierdie dinge uit ondervinding geleer. Jy kan gerus hierdie waarhede ernstig opvat. Pas dit op jou eie lewe toe!” Job het sy vriende geantwoord en gesê: “As my hartseer geweeg en my probleme op ’n skaal gesit kon word, sal dit swaarder weeg as al die sand van die see. Dit is hoekom ek so kras gepraat het. Die Here wie se mag geweldig groot is, het my met sy pyle geskiet. Ek is vol van die gif van hierdie pyle. God het vreeslike dinge op my pad gestuur. Sê my, het ek die reg om ongelukkig te voel? ’n Donkie balk as hy nie gras het om te eet nie. ’n Bees bulk ook as daar nie voer in die krip is nie. En mense kla as daar nie sout in die kos is nie en dit smaakloos is. Die wit van ’n ongekookte eier is ook nie eetbaar nie. Dit is sleg! Ek sit nie my mond aan sulke kos nie. Dit maak my siek!” Job het verder gepraat: “Ag, as ek maar kan kry wat ek vra. Ek wens so dat God sal gee wat ek met my hele hart begeer! Ek wens Hy wil my verpletter. Ek wens Hy wil my laat doodgaan! Ten minste kan ek my hiermee troos: al kon ek die pyn amper nie uitstaan nie, so erg was dit, het ek wat die Here sê ernstig opgevat. Ek het nie meer die krag om langer uit te hou nie. Daar is nie meer iets in die lewe oor wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou nie. Is ek miskien van klip gemaak? Dink julle my lyf is so hard soos koper? Nee, die waarheid is dat ek heeltemal hulpeloos is. Ek kan myself nie help nie. Daar is geen hoop op uitkoms nie.” Verder sê Job: “’n Mens moet mooi werk met ’n vriend wat in so ’n toestand soos ek is. Ja, selfs al het ek miskien nie so geleef soos die Here wou hê ek moes nie. Julle is my vriende, maar julle is net so onbetroubaar soos ’n spruit wat die een oomblik droog is en die volgende oomblik kom die water daarin afgestroom. Onder die ys is die water donker. Sneeu maak die spruit so toe dat dit lyk of daar niks is nie. Wanneer dit weer warm word, verdamp die water. Die hitte droog die spruit heeltemal op sodat ’n mens nie eens kan sien dat daar een was nie. Reisigers draai af na die spruit om ’n bietjie lafenis te soek, maar dis pure verniet. Hulle beland in ’n droë wêreld en op die ou einde gaan hulle van dors dood. Reisigers wat van Tema en Skeba af kom, stop met die hoop om water te kry, maar kry niks nie. Hulle was so seker hulle sou water kry, nou staan hulle verslae by die droë spruit. Julle is vir my net soos hierdie droë spruit. Julle help my net mooi niks nie. Noudat julle sien hoe vreeslik my toestand is, is julle bang. Hoekom? Het ek al ooit vir julle gevra om vir my iets te gee? Sê my, het ek al in enige stadium vir julle gevra om iemand vir my om te koop? Het ek julle al gevra om my van my vyande te red? Het ek julle al ooit gevra om aan mense wat my onderdruk ’n losprys te betaal?” Job het gesê: “Ek sal stilbly as julle my wil leer. Help my verstaan waar ek verkeerd gedoen het. Dit is so dat dit nie lekker is om eerlike kritiek te hoor nie, maar dit kan my miskien help. Maar wat bereik julle met julle argumente? Dink julle miskien wat julle sê, maak enige indruk op my? Julle wil nie eens na my desperate geroep luister nie. Ek praat mos sommer in die wind! Julle trek oor ’n weeskind lootjies. Julle is selfs bereid om ’n vriend vir wins te verkoop. Maar kyk my in die oë. Dink julle ek sal in julle gesig vir julle lieg? Hou op om te dink dat ek skuldig moet wees. Ek het niks verkeerds gedoen nie; ek is onskuldig. Julle is regtig onregverdig teenoor my. Dink julle ek praat nie die waarheid nie? Weet julle, ek weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is.” Job het sy vriende gevra: “Is ’n mens se lewe op aarde nie maar harde werk nie? Dit is soos om elke dag vir iemand te werk wat jou huur. Dit is soos ’n werker wat daarna uitsien om net in die koelte te kan staan. Of soos ’n werker wat nie kan wag om sy geld te kry vir die dag se werk wat hy gedoen het nie. Vir baie maande al het ek niks om voor te lewe nie. Ek worstel baie nagte van swaarkry deur. As ek in die aand bed toe gaan, wens ek dit is al die volgende môre. Maar die nagte is lank en uitgerek. Ek lê en rondrol tot die volgende oggend toe. My hele lyf is vol wurms en rowe. My vel word hard en bars oop terwyl sweersel uitloop.” Job het vir die Here gesê: “Daar is nie hoop vir my nie. My lewe gaan vinniger verby as wat die spoel in ’n weefraam heen en weer beweeg. Here, onthou dat my lewe soos ’n asemteug is. Ek sal nooit weer goeie dinge sien gebeur of geniet nie. U sien my nou net vir ’n klein rukkie. Terwyl U nog so na my sal kyk, sal ek net skielik nie meer daar wees nie. ’n Wolkie raak so geleidelik weg en verdwyn dan heeltemal. Net so sal ’n mens wees wat doodgaan en nie weer terugkom nie. So ’n mens is vir altyd van sy huis af weg. Almal wat hom vroeër geken het, sal van hom vergeet.” Job het voortgegaan en gesê: “Ek kan nie meer stilbly nie. Ek wil praat van die swaarkry wat ek deurgaan. Ek wil kla, want ek voel bitter. Is ek soos ’n see of ’n seemonster dat U iemand aanstel om my op te pas? As ek gedink het dat ek kon gaan lê het en dat my bed my sou troos, het ek dit mis gehad. Ek het gedink dat ek my ellende sou kon vergeet as ek slaap. Maar U het vir my drome gegee wat my banggemaak het. U het my verskriklike goed laat sien wat my nagmerries gegee het. Dit was so erg dat ek sou verkies het dat iemand my verwurg. Ek sou liewer wou doodgaan as om langer so in my liggaam te bly leef. Ek haat my lewe. Ek gaan tog nie vir altyd lewe nie. Laat my tog net alleen. My lewe maak nie meer sin nie. “Here, waarom is mense so belangrik vir U? U doen so baie moeite met hulle. U kyk elke môre hoe dit met hulle gaan. U toets ook die mens elke oomblik van die dag. U kyk nie eens vir ’n klein rukkie van my af weg nie. Hoekom gee U my nie net ’n kans om asem te skep nie? As ek verkeerde goed sou gedoen het, wat het ek aan U gedoen? U pas mense soos ’n bewaarder op. Hoekom het U my as ’n teiken gebruik? Hoekom het U my gekies? Het ek vir U ’n las geword? Hoekom vergewe U my nie maar die dinge wat ek verkeerd gedoen het nie? Kan U nie maar my skuld wegvat nie? Dit sal nie meer lank wees nie, dan lê ek in my graf. As U my soek, sal ek nie meer daar wees nie.” Bildad, wat van Suag af kom, het Job geantwoord: “Hoe lank gaan jy aanhou om so te praat, Job? Wat jy sê, is soos ’n wind wat alles verwoes. God sal mos nie dinge verdraai wat volgens die wet is nie. Niemand is so magtig soos die Here nie. Hy doen wat reg is. As jou kinders dinge gedoen het wat vir die Here verkeerd is, sal Hy hulle straf. Maar hulle straf sal pas by wat hulle gedoen het. Hulle sal kry wat hulle verdien. Vra wat God wil hê jy moet doen en pleit by Hom om sag met jou te werk. En as jy ook nog op ’n skoon en eerlike manier leef, sal die Here jou goedgesind wees. Hy sal jou weer ’n plek in die lewe gee wat jy verdien. Jy het klein en eenvoudig begin, maar in die toekoms sal dit met jou baie goed gaan. “Gaan steek kers op by mense wat voor ons geleef het. Leer uit die ervaring van ons voorouers. Ons leef nog nie so lank nie; daarom weet ons nie so baie nie. Ons lewe op aarde gaan soos ’n skaduwee verby. Maar jy kan iets leer by die mense wat voor jou geleef het. Hulle sal jou raad gee uit alles wat hulle al gesien en beleef het.” Bildad het nog aangegaan om te praat: “Die papirusplant groei net in moerasse. Biesies floreer net waar daar water is. Hulle blom nog en kan nog nie eens afgesny word nie, dan verlep hulle al. Dieselfde gebeur met mense wat van God vergeet. Vir hierdie mense wat hulle nie aan God steur nie, is daar nie ’n stukkie hoop oor nie. Hulle vertrou op dinge wat nie baie veilig is nie. Dit is so goed soos om aan die draadjie van ’n spinnerak te hang. Hulle lê teen die spinnerak, maar dit gee pad. Dit help nie eens om dit te probeer vasgryp nie. Hulle vertrou op vals dinge. Hulle is soos ’n plant wat goed groei in die son. Die wortels van die plant sprei oor die hele tuin uit. Die wortels boor tussen die klippe en rotse in sodat dit goed kan vashou. Maar as hierdie plant uitgetrek word, sal niemand eens onthou dat daar so ’n plant was nie. Die enigste blydskap wat mense het wat hulle nie aan God steur nie, is dat ander ná hulle in hulle plek sal kom.” Verder sê Bildad: “Die Here sal nie onskuldige mense wegstoot nie. Maar Hy sal beslis nie kwaaddoeners help nie. Job, Hy sal jou weer laat lag en uitroep van blydskap. Hy sal die mense wat jou haat in die skande laat kom. Daar sal niks van hierdie slegte mense se blyplekke oorbly nie.” Job het Bildad geantwoord en gesê: “Ek weet dit is waar wat jy sê. ’n Mens kan nie ’n saak teen die Here wen nie. As ’n mens God wil aanvat, gaan jy tweede kom. Jy sal Hom nie eens een uit 1 000 keer kan antwoord nie. Die Here weet baie en Hy is ontsettend sterk. Daar is nie ’n mens wat teen Hom kan opstaan en dit oorleef nie. “Voordat die berge nog weet dit gaan gebeur, skuif God hulle. As Hy kwaad word, keer Hy hulle sommer onderstebo. Hy skud die aarde dat dit voel of die aarde nie meer op sy ou plek staan nie. Hy laat die fondamente van die aarde bewe. Hy sê vir die son om nie meer te skyn nie, en dan kom die son nie op nie. Hy keer ook dat die lig van die sterre deurkom. Hy het die hemel alleen soos ’n doek uitgesprei. As Hy wil, loop Hy sommer op die branders van die see. Hy het al die sterre gemaak. Hy het die Beer en Orion gemaak. Dan ook nog die Sewester en die Suiderkruis. Mense kan nie die groot dinge verstaan wat die Here doen nie. Dit is bokant hulle vuurmaakplek. Hy doen ook so baie wonders, dit kan nie eens getel word nie. Die Here gaan hier by my verby, en ek sien Hom nie eens nie. Ek sal nie eers daarvan weet as Hy verder gaan nie. As Hy iets wil wegruk, is daar niemand wat in sy pad kan staan nie. Wie sal waag om Hom te vra: ‘Wat doen U?’ God hou nie sy woede in toom nie. Hy verbrysel selfs sterk magte wat teen Hom in opstand kom.” Job het gevra: “Wie is ek sodanig dat ek vir die Here sal probeer antwoorde gee? Ek kan nie eens dink ek moet met Hom stry nie. Selfs al is ek onskuldig, kan ek my nie teen Hom verdedig nie. Al wat ek regtig kan doen, is om Hom mooi te vra om maar ’n bietjie genadig met my te wees. Selfs as ek na Hom roep en Hy my antwoord, twyfel ek of Hy na my sou luister. Die Here het my sonder enige rede hard geslaan. Dit het vir my gevoel of ’n storm my tref. Nou het Hy my wonde net nog meer gemaak. Hy laat my nie eens toe om ’n bietjie asem te skep nie. Hy laat my bitter, bitter swaarkry. Hy het al die krag; niemand kan met Hom kragte meet nie. As dit gaan oor wat reg is, wie sal Hom vir my voor die hof daag? Al doen ek dinge reg, praat ek of ek skuldig is. Al glo ek dat ek onskuldig is, sal daar bewys word dat ek verkeerd is. “Ek is onskuldig,” het Job gesê, “ek gee niks om vir my lewe nie. Om die waarheid te sê, ek haat my lewe. Maar dit maak nie eintlik saak of ek onskuldig of skuldig is nie, dit is een en dieselfde vir Hom. Hy vernietig skuldige en onskuldige mense. As die een of ander ramp onskuldige mense skielik tref en hulle gaan dood, lag Hy oor hulle ellende. God het die wêreld vir die slegte mense gegee. Hy het ook die regters blind gemaak om nie verkeerde goed raak te sien nie. Hulle tree nie regverdig op nie. As dit nie die Here is wat dit gedoen het nie, wie het dan?” Job sê ook: “’n Atleet hardloop baie vinnig. My lewe gaan nog vinniger as dit verby. My dae vlieg verby sonder dat enigiets goeds gebeur. My lewe verdwyn soos ’n boot van papirus wat vinnig verbyskiet. Dit verdwyn so vinnig soos ’n arend op sy prooi neerduik. Ek kan sê ek sal met al my gekla ophou. Ek kan ook besluit om op te hou om met ’n lang gesig rond te loop en vroliker te wees. Maar dan word ek bang vir al die swaarkry wat nog voorlê. Ek weet, Here, dat U nie dink dat ek onskuldig is nie. As ek dan nie anders kan as om skuldig te wees nie, wat help dit dan nog om enige moeite te doen? Dit is alles verniet! Dit sal nie eens help om my met seep of enige sterk wasmiddel te was nie. U sal my tog net weer in ’n modderpoel gooi. Dan sal ek so vuil wees dat selfs my eie klere my sal haat.” Job het gesê: “Die Here is nie ’n mens soos wat ek is nie. Ek kan nie met Hom baklei en terugpraat nie. Ons kan ook nie hof toe gaan om te sien wie van ons twee reg is nie. Ek wens daar was iemand wat ons twee bymekaar kon bring en ons kon help om vrede te maak. Maar daar is nie so iemand nie. Ek wens verder dat die Here sal ophou om my te slaan. Ek wil nie langer so vreeslik bang wees vir Hom nie. As dit kon gebeur, sou ek met Hom kon praat sonder om bang te wees. Maar soos sake nou staan, kan ek nie.” Job het gesê: “Ek haat my lewe, ek sien nie kans om so aan te gaan nie. Daarom gaan ek nou presies sê wat my pla. Ek is bitter ontevrede. Ek gaan vir die Here sê: Moenie my net straf nie. Sê vir my waaroor U my aankla. Dink U dat dit reg is om my so swaar te laat kry? Hoekom dink U so min van my? U het my tog self gemaak. Aan die ander kant is U so tevrede met die dinge wat die slegte mense doen. Ek verstaan dit nie mooi nie. Is u oë maar net soos ’n gewone mens s’n? Dit lyk of U na dinge kyk soos mense daarna kyk. U lewe is mos nie so kort soos ’n mens s’n nie. Hoekom soek U dan so hard na die foute wat ek gemaak het? Hoekom probeer U uitvind wat ek verkeerd gedoen het? U weet ek is onskuldig. Maar daar is niemand wat my uit u mag kan red nie. “U het my met u hande gemaak en my ’n vorm gegee. Maar nou draai U om en vernietig my weer. Onthou U dat U my van klei gemaak het? Gaan U my nou weer net stof maak? U was daarvoor verantwoordelik dat my lewe begin het. Dit is ook U wat my in my ma laat groei het. U het my aanmekaargesit. Eers het U my bene en senings aanmekaargebind. Daarna het U dit met vleis en met vel oorgetrek. U het vir my lewe gegee. U liefde is ook altyd daar. Dit is nie een dag op en die ander dag af nie. Omdat U my liefhet, het U my nog nooit in die steek gelaat nie. U sorg het gemaak dat ek nog kon aangaan met my lewe. “Maar ek besef nou dat U nog altyd geheime planne gehad het. U het my dopgehou en geweet van elke verkeerde ding wat ek gedoen het. U plan was om my nie daarmee te laat wegkom nie. As ek daaraan skuldig was dat ek slegte dinge gedoen het, verdien ek al die ellende. Maar ek is onskuldig en tog kan ek nie my kop optel nie. Dit is omdat ek voel dat ek verskriklik verneder is en dit baie sleg met my gaan. En as ek dit tog sou regkry om my kop op te tel, sal U my jag soos ’n leeu. U sal net weer u geweldige krag teen my gebruik. U sal ook net weer nuwe goed teen my inbring. U frustrasie met my bou net meer en meer op. Daar is gedurig nuwe ellendes wat my tref. “Hoekom het U toegelaat dat ek gebore word? Ek moes dood gewees het voordat enigiemand my gesien het. Dan sou dit gewees het of ek nooit eens bestaan het nie. Hulle sou my sommer reguit van my geboorte na my graf toe kon dra. Ek het nie meer baie tyd oor om te lewe nie. Los my net ’n bietjie in vrede. Vat net die aandag van my af weg sodat ek ’n tydjie kan hê wat ek kan geniet. Ek wil graag ’n slag bly wees voordat ek na ’n land gaan waarvandaan ek nooit sal terugkom nie. Dit is ’n land wat stikdonker is. Dit is ’n pikdonker land. Alles is deurmekaar daar. Dit is chaoties! Selfs die lig is daar donker.” Sofar, wat van Naäma af kom, het Job geantwoord en gesê: “’n Mens moet iemand antwoord wat so baie te sê het. Al die gepraat is nie ’n bewys dat jy onskuldig is nie. Moet ek stilbly terwyl jy aanhou met jou gebabbel? Iemand moet jou tog reghelp omdat jy met die Here spot. Jy behoort jou te skaam. Jy is baie seker van jouself as jy sê: ‘Wat ek glo, is reg’ en: ‘Vir die Here is ek onskuldig.’ Ek wens God wil praat en vir jou sê wat Hy dink! Ek wens Hy wil vir jou vertel wat die geheime van wysheid is. Ware wysheid is ingewikkeld; dit het meer as een kant. Dan sal jy insien dat God jou baie lig straf. Jy verdien eintlik om baie swaarder gestraf te word. “Dink jy jy verstaan wie God regtig is en wat Hy doen? God se mag is geweldig groot. Dink jy dat jy verstaan hoe magtig Hy regtig is? Die hemel is baie hoog. God is nog baie hoër as dit. So ook sy kennis. Jy kan nie daarby uitkom nie. En die doderyk is verskriklik diep. Sy kennis en insig is nog dieper as dit ook. Dit is nie iets wat jy sal kan verstaan nie. Dit is baie breër as die aarde en wyer as die see. Sê my ’n bietjie, as die Here iemand vat en hom in die tronk gooi, wie sal waag om Hom te stop? Wie sal Hom keer as Hy iemand voor die hof daag en straf? Hy weet wie skelm is. Hy weet ook van al die verkeerde dinge wat hulle doen. Hy sal dit nie vergeet nie. ’n Mens kan nie uit ’n donkie gebore word nie. Net so min kan ’n dom mens kennis en insig kry. “Job, jy moet jou houding teenoor God regkry. Steek jou hande na Hom toe uit om te wys dat jy van Hom afhanklik is. Hou op om verkeerde dinge te doen. Moenie verkeerde goed in jou huis toelaat nie. Dan sal jy weer jou kop kan optel sonder om skaam te wees. Jy sal veilig kan voel en weet jy hoef nie bang te wees nie. Jy sal van al jou swaarkry kan vergeet. Dit sal soos water wees wat verbyloop en nie weer terugkom nie. Jy sal daarvan vergeet. Dit sal met jou goed gaan. Jou lewe sal meer lig hê as die son wat in die middag skyn. As daar donker tye in jou lewe kom, sal dit soos lig wees. Omdat jy weet daar is hoop vir jou, sal jy moed hê vir die toekoms. As jy klaar na alles om jou gekyk het, sal jy veilig kan slaap. Jy sal vir niks meer bang wees terwyl jy so lê en slaap nie. Baie mense sal in jou goeie boekies probeer wees. Die mense wat hulle nie aan die Here steur nie, sal alle hoop verloor. Hulle kan nêrens heen vlug nie. Hulle enigste hoop is om dood te gaan.” Job het geantwoord en gesê: “Sjoe, maar julle is darem slim mense! As julle doodgaan, is alle kennis saam met julle daarmee heen! Maar ek weet darem ook ’n paar dinge. Julle is niks beter as ek nie. Wie weet nou nie van die dinge waarvan julle praat nie? En tog lag julle, my vriende, vir my. Die Here het my nog altyd geantwoord as ek Hom iets gevra het. Ek is ’n eerlike mens, niemand kan iets slegs van my sê nie. Nogtans lag julle vir my. Mense wie se lewe rustig en sonder probleme is, dink minder as niks van ander wat in die moeilikheid kom nie. Hulle sal iemand wat val nog ’n skop ook gee. Maar daar is selfs rowers wat in rus en vrede gelaat word. En dan is daar mense wat teen God in opstand is wat steeds rustig en veilig lewe. Hulle dink dat hulle God in hulle mag het.” Job het gesê: “Gaan gerus na die diere en die voëls in die lug: hulle kan julle baie leer en vertel. Gaan praat met die aarde. Die aarde het baie om julle te leer. Die visse in die see het ook baie om julle te vertel. Hulle weet almal dat die Here alles gemaak het. Alles wat lewe, is van Hom afhanklik. Elke enkele mens is vir sy asem van die Here afhanklik. ’n Mens proe met sy mond of kos lekker is. Net so moet ’n mens elke woord toets wat hy hoor. Ouer mense het baie kennis en insig. Mense wat lang lewenservaring het, verstaan dinge baie goed.” “Maar God is eintlik die Een wat wysheid en krag het. Hy het altyd goeie raad en insig. As Hy iets vernietig het, kan dit nie weer opgebou word nie. As Hy iemand gevang het, is die kans om te ontsnap net mooi nul. As Hy keer dat dit reën, is daar droogte. En as Hy dit laat reën, verspoel alles weer. Die Here het krag en Hy wen altyd. Hy het mag oor die mense wat ander bedrieg, maar ook oor hulle wat bedrieg word. Hy laat leiers dom lyk. Hy maak van regters gekke. Hy trek konings se koningsklere uit en laat hulle slaweklere aantrek. Hy laat priesters hulle aansien in die samelewing verloor. Hy verneder hulle. Hy raak ook ontslae van mense wat dink hulle sit stewig in hulle magsposisies. Hy maak mense stil wat nog altyd goeie raad vir ander gegee het. Hy vat ook die insig van ouer mense weg. Hy laat belangrike leiers in die skande kom. Hy vat hulle mag weg. “Hy bring donker geheime in die lig. Hy gee lig in donker plekke. Hy laat volke sterk word, maar Hy vernietig volke ook weer. Hy laat toe dat nasies baie groot word, maar Hy laat hulle ook weer verdwyn. Hy vat leiers se vermoë weg om te verstaan en laat hulle in woeste plekke doelloos ronddwaal. Hulle loop voel-voel in die donker rond sonder enige lig. Hy laat hulle soos dronk mense rondslinger.” Job het gesê: “Alles wat julle beskryf het, het ek voorheen gesien en gehoor. Ek verstaan goed wat julle sê. Ek weet net soveel as wat julle weet. Julle moenie dink julle is beter as ek nie. Ek wens darem dat ek self met God kan praat, al is Hy so vreeslik magtig. Ek sal bitter graag vir Hom wil sê hoe ek oor dinge voel. Julle weet nie veel nie en smeer dit met ’n spul leuens toe. Julle is ’n spul nikswerd dokters wat ’n mens nie regtig kan help nie. Bly net ’n slag stil! Dit is die slimste ding wat julle kan doen. Luister net ’n slag wat ek te sê het. Hoor ’n bietjie my kant van die saak. “Probeer julle God met julle leuens en oneerlike argumente verdedig? Julle is veronderstel om onpartydig te wees, maar ek sien julle kies God se kant van die saak. Julle verdedig sy standpunt. Wat dink julle sal gebeur as Hy in julle sake begin krap? Julle moet nie vir ’n oomblik dink dat julle Hom om die bos kan lei soos julle met mense maak nie. Hy sal hard met julle praat as Hy moet uitvind dat julle partydig is. Dit maak nie eens saak of julle vir Hom partydig is of dink julle doen dit in die geheim nie. Hy is magtig. Maak dit julle nie bang nie? Gryp vrees vir Hom julle nie vas nie? Die slim goed wat julle kwytraak, is nie veel meer werd as uitgebrande as nie. Die argumente wat julle gebruik om julleself te verdedig is so broos soos ’n kleipot.” Job het verder gesê: “Bly net ’n slag stil en los my uit! Ek wil my sê sê, maak nie saak wat met my gebeur nie. Ek sal my lewe in my eie hande neem om te kan sê wat ek regtig dink. Ek weet God kan my doodmaak, maar dit maak nie saak nie. Daar is in elk geval nie meer hoop vir my nie. Ek wil by God uitkom en my saak stel. Wat my redding behoort te wees is dat slegte mense dit nie sal waag om na Hom toe te kom nie. Ek is nie soos hulle nie, ek is gehoorsaam.” Job het gesê: “Luister mooi wat ek nou gaan sê. Ek het my feite mooi agtermekaar. Dit sal gou duidelik wees dat ek onskuldig is. Ek dink nie daar is iemand wat hieroor met my kan stry nie. As ek verkeerd bewys word, sal ek tot die dag dat ek doodgaan my mond hou.” Job het vir die Here gesê: “Daar is twee dinge wat ek wil vra wat U vir my moet doen. As U dit doen, hoef ek nie meer vir U weg te kruip nie. Eerstens vra ek dat U my nie meer so swaar sal laat ly nie. Tweedens, moenie dat u geweldige teenwoordigheid my so bangmaak nie. Vra maar wat U wil weet en ek sal antwoord. As U dit anders wil hê, sal ek eerste praat en U kan antwoord. Het ek baie goed verkeerd gedoen? Wys my alles wat nie reg is nie of waar ek oortree het. Hoekom steur U U nie aan my nie? Hoekom maak U asof ek u vyand is? Wil U my probeer afskrik? Sal U ’n blaar probeer bangmaak? Ek is niks meer as ’n blaar wat in die wind rondwaai nie. Sal U ’n grashalm agtervolg? Ek is niks meer as ’n grashalm nie. Die goed waarvan U my beskuldig, laat ’n bitter smaak in my mond. U gaan krap selfs in die dinge wat ek in my jeug verkeerd gedoen het en gooi my dit voor die kop. U het my voete in boeie gesit. U hou elke tree dop wat ek gee. U volg selfs my voetspore. En dit terwyl ek besig is om te vergaan, soos iets wat wegvrot. Ek is soos ’n stuk klere wat deur motte gevreet word.” Job het nog verder gepraat en gesê: “’n Mens se lewe is kort en vol probleme. Jou lewe is soos ’n blom. Vir ’n kort rukkie is die blom pragtig, maar dit gaan gou dood. Dit is soos ’n wolk wat vir ’n klein rukkie ’n skaduwee gooi en dan skielik is dit weg. Dit is so ’n brose mens wat U dophou. U het my voor U gedaag om met my af te reken. Niemand kan iets wat skoon en sonder vlekke is, laat kom uit iets wat vuil is nie. U het besluit hoe lank ’n mens moet leef. U weet hoeveel maande ons het om te lewe. U sê waar die grens van ons lewens is en ons kry nie ’n minuut langer nie. Here, kyk ’n bietjie weg en laat my rus. Gee my kans om soos iemand wat vir ’n dag werk gekry het, my lewenstaak klaar te maak. “As ’n boom afgekap word, is die kans goed dat daar weer nuwe lote en takke uit die stomp sal groei. Dit is dalk so dat die boom se wortels al baie oud is. Dit kan ook wees dat die stomp al in die grond begin vrot het. Maar as daar water kom, kan dit weer soos ’n jong boom groei en nuwe takkies laat uitskiet. “As mense doodgaan, verloor hulle al hulle krag. As die mens sy laaste asem uitblaas, is dit verby. Waar is hulle dan? Water verdamp uit ’n meer. In droogtetye droog riviere op. Met mense gaan dit net so. Hulle gaan lê en staan net nooit weer op nie. Solank daar nog ’n hemel is, sal hulle nie weer wakker word nie. Hulle sal nie weer uit hulle slaap uit opstaan nie.” Job het vir die Here gesê: “Ek wens U wil my tussen die dooie mense wegsteek en my daar hou totdat U nie meer so kwaad is nie. Besluit vir hoe lank U van my wil vergeet. As hierdie tyd verby is, kan U dan weer van my onthou. Wanneer ’n mens doodgaan, is dit moontlik dat hy weer sal begin leef? As dit moontlik was, sou ek in my swaarkry kon vasbyt totdat ek weer ’n vry mens sou wees. Dan sou U na my roep en ek sou U antwoord. U sou weer verlang na my, ek vir wie U gemaak het. Dan sou U my fyn dopgehou het, maar nie om te kyk waar en wat ek verkeerd doen nie. U sou die verkeerde dinge wat ek gedoen het, in ’n sak sit. Daarna sou U die sak met al die verkeerde goed toebind. “Berge breek soms in stukke en verbrokkel. Rotse verskuif ook baiekeer wanneer hulle afrol. Water maak dat klippe verweer en stormwater spoel grond weg. Net so laat die Here mense se hoop verdwyn. Niks bly daarvan oor nie. U oorweldig mense en dan verdwyn hulle heeltemal van die toneel af. U verander hulle voorkoms en stuur hulle weg. Hulle weet nooit wat van hulle kinders gaan word nie. Hulle weet nie of hulle eendag beroemd sal wees en of dit sleg met hulle sal gaan nie. Hulle kan net die hele tyd aan hulle eie pyn en ellende dink.” Elifas het Job geantwoord: “Jy is veronderstel om ’n verstandige mens te wees, maar jou woorde dra nie gewig nie. Dit is wind. En meer nog, jy is ’n windsak! Dit help nie om die dinge te sê wat jy sê nie. Dit kan niemand help nie. Het jy nie respek vir die Here nie? Jy maak dat niemand meer sal bid en met Hom sal praat nie. Dit is omdat jy verkeerde dinge doen dat jy die goed sê wat jy sê. Jy is skelm met die woorde wat jy gebruik. Maar ék hoef jou nie aan te kla nie, jy doen dit self. Jou eie mond doen dit! “Jy maak of jy die eerste mens is wat ooit gebore is. Was jy dalk al hier nog voordat die heuwels gemaak is? Het jy miskien in God se vergadering gesit en gehoor wat Hy alles beplan? Dink jy miskien dat net jy wysheid het? Wat weet jy sodanig wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat ons nie verstaan nie? By ons is mense wat al oud en grys is. Hulle is ouer as jou pa. “Sê ’n bietjie vir my, Job, voel jy dat die troos wat die Here vir jou gee nie juis veel help nie? So ook nie sy mooi woorde vir jou nie? Wat gaan in jou kop aan? Hoekom blits jou oë so? Hoekom is jy so opstandig teen God? Hoekom sê jy sulke vreeslike dinge? Kan ’n mens ooit sonder enige foute wees, sê my? Kan ’n gewone mens altyd reg doen? Om die waarheid te sê, die Here vertrou nie eens sy engele nie. In sy oë is selfs nie eens die hemel sonder enige foute nie. As hulle dit nie eens kan doen nie, hoeveel minder dan ’n mens! Mense is vol foute en doen baie dinge verkeerd. Vir hulle is om water te drink en om verkeerde goed te doen presies dieselfde. “Luister na my, Job, ek sal jou vertel wat ek self al beleef het. Wat ek ervaar het, het ander mense wat bekend is vir hulle kennis en insig ook al ervaar. So sê hulle. En hulle het weer by hulle ouers daarvan gehoor. Hulle ouers was die mense vir wie hierdie land gegee was. Dit was nog voordat vreemde mense tussen hulle ingekom het.” “Vir slegte mense is hulle hele lewe eintlik maar ’n pynlike ervaring. Solank hulle leef, sal ongevoelige mense hulle laat swaarkry. Hulle leef in spanning, want hulle hoor van al die slegte dinge wat om hulle gebeur. Net as hulle dink dat dit nou rustig en goed gaan, oorval ’n aanvaller hulle. Hulle is bang om in die donker uit te gaan, want hulle glo dat hulle nie sal terugkom nie. Hulle verwag dat iemand hulle gaan vermoor. Hulle gaan rond op soek na kos en vra waar hulle dit gaan kry. Eintlik weet hulle dat daar moeilike tye vir hulle voorlê. Die gedagte aan moeilike tye maak hulle baie bang. Hulle lewe doodbang en in angs. Dit is soos ’n koning se spanning net voor hy ’n vyand begin aanval. Dit gaan met hulle so omdat hulle vir God die vuis gewys het. Hulle het teen die Here, wat ontsettend sterk is, in opstand gekom. Hulle is soos mense wat uitdagend op God afstorm met ’n skild om hulle te beskerm. “Hierdie opstandige mense is vet en voorspoedig. Maar hulle stede gaan verwoes word. Hulle gaan in huise bly waarin niemand anders meer wil bly nie. Hierdie huise gaan vernietig word. Hulle sal nie ryk bly nie. Hulle geld sal nie hou nie. Hulle sal ook nie meer oral in die land besittings hê nie. “Donker tye lê vir hulle en wag. Hulle sal nie wegkom nie. Soos ’n vuur ’n boom verteer, sal die Here hulle laat verdwyn. Mense bedrieg hulleself as hulle op nikswerd goed vertrou. Dit bring hulle net mooi niks in die sak nie. Dit is soos ’n boom wat te gou uitdroog en nooit weer groen takke sal hê nie. Hulle sal soos ’n wingerd wees waarvan die groen druiwe afval, soos ’n olyfboom wat bloeisels afgooi en dan nie vruggies kan dra nie. Die mense wat God nie wil ken nie, se lewe lewer niks op nie. Hulle is goddeloos. Hulle huise is vol goed wat hulle van ander mense afgepers het. Hulle huise sal afbrand. Hierdie mense beplan altyd om kwaad te doen. Hulle wag net vir ’n kans om ander mense te kan bedrieg.” As Job soos hulle is, sal dieselfde met hom gebeur. Job het gereageer op wat Elifas gesê het en hom geantwoord: “Ek het al hierdie goed wat julle sê, al baie gehoor. Julle is maar slegte troosters. Wanneer gaan julle end kry met julle sinlose gebabbel? Maak my woorde julle siek dat julle voel julle moet antwoord? Ek sou vir julle dieselfde antwoorde kon gee as julle in my plek was. Ek sou julle ook kon kritiseer en die kop oor julle skud. Maar dit is nie wat ek sou doen nie. Ek sou eerder probeer het om goed te sê wat julle kon help. Ek sou iets wou sê om julle pyn ligter te maak. My gepraat het in elk geval nie my pyn weggevat nie. Maar dit help ook nie ek sê niks nie, die pyn bly.” Job het verder gesê: “Ja, die Here het my uitgemergel en my gesin verwoes. Noudat Hy met my klaar is, is ek net vel en been. Mense dink my toestand is ’n bewys dat ek skuldig moet wees. My liggaam is in hierdie toestand omdat Hy baie kwaad is vir my. Hy kan my nie vat nie! Hy kners op sy tande vir my en kyk reg deur my. Mense drom om my saam en koggel en lag vir my. Hulle dink so min van my dat hulle my sommer deur die gesig slaan. God laat my aan die genade van slegte mense oor. Ek is aan hierdie mense uitgelewer. Ek het rustig my eie gang gegaan, maar Hy het dit kom verbreek. Hy het my aan my nek gegryp en my neergegooi. Dit het vir my gevoel ek breek in stukkies. Toe het Hy my gevat en my sy teiken gemaak. Dit was of sy pyle oral by my verbygevlieg het. Die pyle het my niere deurboor en my gal het op die grond uitgeloop. Hy het niks vir my gevoel nie. Hy het my aanhoudend gewond en op my afgestorm soos ’n soldaat wat ’n vyand aanval. Hier sit ek soos iemand wat oor ’n dooie rou. Platgeslaan! Ek het klere aan wat van sak gemaak is en ek sit in die stof. My gesig is rooi gehuil en daar is swart kringe om my oë. Ek is nie skuldig aan enige geweld nie. Daar is net mooi niks met my gebede verkeerd nie.” Job het nog gepraat en gesê: “My bloed op die grond bewys dat ek sleg behandel is. Die grond moet dit nie wegsteek nie. Ek skreeu oor die onreg teen my. Moenie dat my geskreeu stilgemaak word nie. Op hierdie oomblik het ek iemand in die hemel wat in my guns getuig. Hy behartig my saak daar en praat namens my. My vriende spot met my; daarom huil ek liewer by God. Ek wens iemand wil namens my by God pleit. Dit moet iemand wees wat dit sal doen soos ’n mens dit vir ’n vriend sal doen. Binnekort moet ek na ’n plek gaan waarvandaan ek nie weer gaan terugkom nie.” Job het gesê: “Ek is moedeloos, my lewe is verby. Die dood wag vir my. Oral om my is mense wat my spot. Ek kan maar net sit en kyk hoe hulle my uittart. “Here, wil U my nie maar verdedig nie? Daar is niemand anders wat vir my wil instaan nie. U het gemaak dat my vriende nie kan verstaan wat aangaan nie. Ek vra mooi, moenie dat hulle wen nie. Hulle is eintlik verraaiers. Hulle praat teen hulle vriende, want hulle kry iets in ruil daarvoor. Maar die slegte ding is, hulle kinders is op die ou einde die slagoffers daarvan. “Die Here maak my belaglik voor die mense. Hulle spoeg selfs in my gesig. My oë is al dof van al die gehuil. Ek is so maer, ek is net ’n skaduwee van wat ek vroeër was. Van die mense wat reg probeer leef, is geskok wanneer hulle my toestand sien. Hulle kom in opstand teen die goddeloses, wat nie ’n saak met God het nie. Daar is mense wat reg leef. Hulle bly op die koers wat hulle gekies het. Hulle word net meer en meer oortuig daarvan dat hulle moet aanhou om ordentlik te leef.” Job het ook vir hulle gesê: “Julle kan gerus almal weer terugkom en voor my kom staan, maar ek is oortuig dat ek nie een verstandige mens onder julle sal kry nie. My lewe is verby. Ek het geen planne of drome meer vir die toekoms nie. My vriende maak of die nag dag is. En wanneer dit donker is, maak hulle of die lig naby is. Hulle verdraai die waarheid. Dit is eintlik ’n hopelose toestand as die graf vir my ’n huis moet wees, dat ek in die donker vir my ’n rusplek moet regkry. Moet ek dan die graf my pa noem en die wurms my ma of my suster? Daar is nêrens enige hoop vir my nie. Niemand anders sien enige hoop vir my nie. My hoop gaan saam met my graf toe. Ons sal maar saam in die stof gaan rus!” Bildad het Job geantwoord en gesê: “Hoe lank gaan jy nog aanhou praat, Job? Dink ’n slag mooi oor wat jy sê, dan praat ons weer. Dink jy ons is ’n klomp beeste? Dink jy ons is dom? Jy maak jouself vreeslik seer omdat jy kwaad is. Maar sê my, moet al die mense van die aarde padgee ter wille van jou? Moet ’n rots ter wille van jou uit sy plek geskuif word?” “Dit is waar dat die lig van die slegte mense sal doodgaan. Hulle vlammetjies sal nie meer brand nie. Daar sal nie meer lig in hulle blyplekke skyn nie. Hulle lampe sal ook ophou brand. Die slegte mense sal nie meer so vol selfvertroue rondloop nie. Hulle eie planne sal hulle laat ondergaan. Hierdie kwaaddoeners sal in ’n net vasloop. Hulle sal in ’n vanggat val wat in die pad gegrawe is. Hulle sal in ’n wip trap wat hulle aan die hakskeen sal vasvang. ’n Lus is vir hulle op die grond weggesteek wat hulle nie sal kan sien nie. Oral om hulle is daar gevare wat hulle bangmaak en hulle wil oorval. Omdat hulle honger is, het hulle nie veel krag nie. Onheil kan nie wag dat hulle moet val nie. Daar is siektes wat hulle vel laat wegkrimp. Die dood eet hulle ledemate weg. Hulle sal uit die veiligheid van hulle woonplekke uitgeruk word. Hulle sal dan na die koning van alle onheil gebring word. Daar sal niks in hulle huise oorbly nie, want brandende swael sal daaroor gegooi word. Hulle wortels sal uitdroog en hulle takke sal heeltemal verlep. Niemand sal ooit eens onthou of weet dat hulle op die aarde geleef het nie. Hulle sal uit die lig in die donker gegooi word. Hulle sal uit hierdie wêreld gejaag word. Hulle sal nie kinders of kleinkinders hê nie. Niemand sal oorleef om in hulle land agter te bly nie. Die mense in die weste en in die ooste sal geskok wees oor wat met hulle gebeur. Hulle sal sê: ‘Dit moet die huise wees van mense wat God nie geken het nie en hulle nie aan Hom gesteur het nie.’ Dieselfde sal met jou gebeur, Job, omdat jy opstandig is.” Job het gereageer op wat Bildad gesê het. Hy het gesê: “Hoe lank sal julle my nog pynig en uitmekaarskeur met julle praatjies? Dit is al die soveelste keer dat julle my beledig. Julle behoort julle te skaam dat julle my so sleg behandel. En al het ek verkeerd gedoen, bly dit nog steeds my probleem. Julle dink julle is beter as ek. Julle redeneer dat die toestand waarin ek is, dit bewys. Maar dit is God wat my nie reg behandel nie. Dit is Hy wat my in hierdie omstandighede vasgevang hou. “Ek roep dat iemand my moet kom help, maar niemand hoor my nie. Ek kla en protesteer, maar niemand help my nie. Ek word nie regverdig behandel nie. Die Here het my pad toegestop sodat ek nie kan aangaan nie. Hy maak die pad vorentoe vir my donker. Mense het eers baie van my gedink en my met respek behandel. Maar die Here het dit van my af weggevat. Waar Hy kon, het Hy my afgetakel. Dit is klaar met my! Alle hoop wat ek gehad het, het Hy doodgemaak. Die Here is woedend kwaad vir my. Hy maak asof ek sy vyand is. Die lyding wat ek deurmaak, is soos ’n oorlog teen my. Die Here stuur die probleme soos soldate teen my. Hulle grawe hulle in teen my en omsingel my. “Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak. My familie en bekendes het my in die steek gelaat en van my vergeet. My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is. Hulle maak of ek nie daar hoort nie. Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie. My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my. Selfs klein kindertjies dink niks van my nie. As ek probeer opstaan, spot hulle met my. My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai. Ek is nou net vel en been. Ek leef amper nie eers meer nie.” Job het gepleit: “Julle is my vriende, wees net ’n bietjie geduldig met my. Moenie kras met my werk nie. Die Here het my hard geslaan. Hoekom vervolg julle my nou net soos God maak? Waarom los julle my nie liewer uit nie? “Ag, hoe wens ek dat alles wat ek sê in ’n boek opgeskryf kan word. Ek wens dat my woorde met ’n ysterbeitel in klip uitgekap en met lood opgevul kan word.” Job het gesê: “Ek weet dat Hy wat my kan verlos, lewe. Uiteindelik sal Hy op die aarde kom staan. Selfs al is my liggaam besig om agteruit te gaan, weet ek dat ek eendag die Here sal sien. Ek sal Hom self sien, niemand anders nie. Ek sal Hom met my eie oë sien. Die gedagte daaraan is amper te veel vir my om te hanteer. Dit oorweldig my! “Hoe durf julle my vervolg en sê dat die oorsaak van die probleem by my lê? Miskien moet julle ’n bietjie versigtig wees met julle houding; God kan julle dalk ook met die dood straf. As dit gebeur, sal julle weet daar is ’n oordeel en straf!” Sofar het Job geantwoord en gesê: “Ek moet jou antwoord, want ek is omgekrap oor wat jy gesê het. Jou kritiek op wat ek gesê het, is ’n belediging vir my. Ek dink ek weet hoe ek jou daarop moet antwoord. “Ek is seker jy weet dat vandat die eerste mens op die aarde gesit is, die slegte mense se geluk nie lank hou nie. Dit is ook so dat die blydskap van ’n mens wat God nie wil ken nie, net ’n kort rukkie hou. Al sou ’n goddelose mens dink dat hy beter as gewone mense is, en met sy kop in die wolke loop, sal daar op die ou einde tog niks van hom oorbly nie. Hy sal soos sy eie ontlasting net verdwyn. Mense wat hom ken, sal vra: “Wat het van hom geword?” Hy sal soos ’n droom of ’n gesig wat hy in die nag sien, net wegraak. Sy vriende en familie sal hom nooit weer sien nie. Sy kinders sal by die arm mense bedel, want hy sal sy rykdom moet teruggee. Hy is eintlik nog jonk en sterk, maar hy is op pad graf toe. “Hy hou daarvan om verkeerde dinge te doen. Dit is soos om iets lekkers onder jou tong te laat smelt. Hy hou dit so lank moontlik in sy mond. Maar die kos in sy maag word bitter. Dit is soos dodelike gif in sy maag. Hy sal die rykdom wat hy ingesluk het, weer uitbraak. God sal dit uit sy maag laat uitkom. Hy sal die gif van slange suig. ’n Adder sal hom doodpik. Hy is baie ryk, maar dit help hom niks nie. Hy sal nie die riviere van olie sien nie. Hy sal ook nie oorvloed van melk en heuning geniet nie. Hy sal nie vir sy harde werk betaal word nie. Sy rykdom sal hom ook nie bly maak nie. Hy het die arm mense uitgebuit en hulle in hulle ellende gelos. Hy het ander mense se huise wat hy nie gebou het nie, afgevat. Hy was baie gulsig, hy kon net nooit genoeg kry nie. Hy het van baie dinge gedroom, maar hy sal niks daarvan oorhou nie. As hy eet, bly daar gewoonlik niks oor nie. Net so sal sy voorspoed ook nie aanhou nie. Dit sal verdwyn. “Hy sal nog so in weelde leef en sy rykdom geniet, dan tref die ongeluk hom. Ellendes sal hom tref soos hy nie gedink het dit kan nie. Hy sal nog so sy maag vol eet, dan tref God se vreeslike woede hom. Sy woede sal soos reën op hom val. Hy sal probeer wegvlug van ’n wapen wat van yster gemaak is, maar dan tref ’n koperpyl hom. Die pyl sal deur sy lyf gaan en in sy ingewande vassteek. As hulle die pyl uittrek, sal ’n doodsvrees hom skielik oorval. Sy besittings sal in ’n groot, donker gat verdwyn. ’n Vuur wat nie deur enigiemand aangeblaas is nie, sal hom verbrand. Die vuur sal alles opvreet wat in sy blyplek oor is. Die hemel sal al die verkeerde goed wys wat hy gedoen het. Die aarde sal teen hom getuig. Alles wat in sy huis is, sal weggespoel word wanneer God se woede hom soos ’n vloed sal tref. Dit is wat met slegte mense gaan gebeur. Die Here het besluit dit is wat moet gebeur.” Job het Sofar geantwoord en gesê: “Luister asseblief baie mooi na wat ek sê. Dit sal al vir my ’n groot troos wees as julle net dit doen. Wees geduldig met my en laat my klaar praat. Daarna kan julle maar aangaan en my koggel. “Ek het ’n klag, maar my probleem lê nie by mense nie. Ek het ’n rede hoekom ek so ongeduldig is. As julle na my kyk, sal julle geskok wees. Sit gerus maar julle hande op julle monde van verbasing. As ek net dink aan wat ek nou moet deurmaak, sidder ek. My hele lyf gaan aan die bewe. “Sê ’n bietjie vir my, hoekom bly slegte mense leef? Hulle word baie oud en kry net al hoe meer mag. In hulle leeftyd sien hulle hoe hulle kinders grootword en koers in die lewe kry. Hulle sien ook hoe hulle kleinkinders opgroei. Hulle leef baie veilig en rustig in hulle huise, want God straf hulle nie. Hulle boer ook vooruit. Hulle vee teel goed aan. Hulle verloor ook nie kalwers by geboorte nie. Hulle kinders speel soos lammetjies en dans rond omdat hulle bly is. Hulle sing op die maat van die tamboeryn en die harp. Hulle is opgewek en vermaak hulleself met fluitmusiek. Hulle leef hulle hele lewe lank in weelde en gaan in vrede dood. En dit terwyl hulle vir God sê: ‘Los ons uit, ons wil niks van U weet of met U te doen hê nie!’ Hulle vra: ‘Wie is hierdie God wat so danig magtig is dat ons Hom moet dien? Watse voordeel gaan ons daaruit trek as ons tot Hom bid?’ Hulle dink dat dit hulle eie prestasie is dat dit so goed met hulle gaan. Ek hou niks van hulle manier van dink nie.” Job het nog verder gesê: “Die slegte mense het al hoeveel keer rampe oorleef. Hulle is selde in die moeilikheid of kry selde wat hulle verdien as God in sy woede straf uitdeel. Dit gebeur ook nie baie dat hulle soos strooi deur die wind rondgewaai word nie. Hulle word ook nie soos kaf deur stormwinde weggewaai nie. “Julle sê dat God die kinders straf vir die dinge wat hulle ouers verkeerd gedoen het. Maar God behoort die mense te straf wat die verkeerde dinge gedoen het. Hulle moet self die straf voel, nie hulle kinders nie. Hulle moet hulle eie ondergang self beleef. Hulle moet die woede van die Here self voel. Want as hulle eers dood is, gee hulle nie om wat met hulle familie gebeur nie. “Daar is tog niemand wat vir God iets kan leer nie. Hy oordeel dan selfs oor mense in hoë posisies. Hoe regverdig is dit? Met party mense gaan dit goed totdat hulle doodgaan. Hulle leef gemaklik sonder dat enigiets hulle pla. Hulle lyk baie gesond en vol energie. Ander, weer, gaan as verbitterde mense dood. Hulle het nooit iets van die lekker van die lewe geniet nie. Die waarheid van die saak is dat albei hierdie soorte mense in die graf beland en deur wurms vernietig word.” Job het vir sy vriende gesê: “Ek weet hoe julle dink. Ek weet ook watse argumente julle teen my gaan gebruik om my skade aan te doen. Julle sal sê: ‘Wat het van die huise van die belangrike mense geword? Waar is die blyplekke van die slegte mense heen?’ Gaan vra gerus vir die mense wat al baie rondgereis het. Hulle sal vir julle die waarheid vertel. As daar ’n ramp kom, word die slegte mense se lewens gespaar. Dit is nou maar net so. Hulle kom ook niks oor as God kwaad is en mense straf nie. Niemand sê ook sommer reguit vir hulle dat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand betaal hulle ook terug vir wat hulle gedoen het nie. As hulle na hulle graf gedra word, is daar ’n erewag opgestel. Baie mense is deel van die begrafnisstoet. Party loop voor en ander mense loop weer agter. Selfs die grond ontvang hulle vriendelik. Al julle troos is net mooi niks werd nie. Al julle argumente is ’n spul leuens!” Elifas het Job geantwoord en gesê: “’n Mens kan nie juis iets doen wat vir God baie beteken nie, selfs nie al is jy baie verstandig nie. Maar as jy slim is, kan jy vir jouself nogal baie regkry. Maak dit die Here bly as jy reg doen? Hou dit vir Hom enige voordeel in as jy reg leef? Kla die Here jou aan en straf Hy jou omdat jy Hom eer en respekteer? Nee, natuurlik nie. Dit is omdat jy so baie verkeerde dinge doen dat Hy jou aankla en straf. Jy hou net nie op om verkeerd te doen nie. “Jy het byvoorbeeld van jou broers verwag om van hulle goed by jou te verpand, maar jy gee niks in ruil terug nie. Jy het selfs so ver gegaan om mense sonder klere te los omdat jy hulle kaalgestroop het. Jy wou nie vir mense wat honger en dors was, kos of water gee nie. Jy dink dat die grond net aan mense kan behoort wat mag het. Jy dink dat net bevoorregte mense daarop mag bly. Jy het weduwees met leë hande weggestuur en weeskinders mishandel. Daarom is daar nou oral vangstrikke om jou en kry jy angsaanvalle. Dit is ook hoekom dit vir jou so donker is dat jy niks kan sien nie en die vloedwater oor jou spoel. “God is so groot, Hy is hoër as die hemel. Ja, Hy is hoër as die verste sterre. Maar jy reageer en sê: ‘God weet nie wat aangaan nie. Hy kan nie deur hierdie donker wolke sien om te oordeel wat ek doen nie. Die digte wolke maak alles toe. Hy loop doer ver op die horison van die hemel rond. Dit is onmoontlik vir Hom om ons van daar af te kan sien.’” Elifas het verder gevra: “Is jy steeds van plan om dieselfde verkeerde pad as die kwaaddoeners te loop? Voordat dit eintlik hulle tyd was, is hulle uit die lewe weggeruk. ’n Rivier het hulle lewensfontein weggespoel. Hulle het vir die Here gesê: ‘Los ons uit! Wat kan U nou eintlik vir ons doen?’ Maar ek stem nie met hierdie slegte mense saam nie. Hulle het vergeet dat dit Hy is wat vir hulle al die goeie goed gegee het wat in hulle huise is. “As die mense wat reg doen, sien dat die slegte mense ondergaan, is hulle baie bly. Hulle lag en spot hulle daaroor. Hulle sê: ‘Ons vyande bestaan nie meer nie. Hulle besittings is deur vuur verbrand.’” Elifas het vir Job gesê: “Gee nou bes en raak nou rustig. Eers dan sal dit beter met jou begin gaan. Laat die Here jou leer en vat wat Hy sê, ernstig op. Kry jou verhouding met die Here reg en Hy sal jou help om jou lewe weer op te bou. Raak ook ontslae van alles in jou huis wat nie reg is nie. Laat jou goud in die stof verdwyn. Gooi jou fynste goud tussen die klippe in die rivierbedding in. As jy dit doen, sal God, wat magtiger is as almal, jou goud en jou kosbare silwer wees. “Dan sal jy bly kan wees omdat jy die Here ken. Jy sal weer gemaklik voel om God te aanbid. As jy bid, sal Hy jou hoor en antwoord. Dan sal jy ook doen wat jy Hom beloof het jy sal doen. Alles wat jy besluit om te doen sal jy regkry. Lig sal op jou pad skyn. Dit sal met jou goed gaan. As mense verneder word, sal jy sê: ‘Hou moed!’ Die Here help mense wat nederig is. Hy laat mense vrykom wat skuldig is. Jou onskuld sal maak dat hulle sal vrykom.” Job het gereageer op wat Elifas te sê gehad het. Hy het gesê: “Ek wil vandag weer kla. Ek is nog steeds opstandig omdat ek swaarkry. Ek kreun van swaarkry. Ek wens ek het geweet waar om God in die hande te kry. Ek sou na Hom toe gegaan het waar Hy ook al is. Ek sou my saak gestel het en al my argumente vir Hom uitgepak het. Ek sou na sy antwoord geluister het en probeer verstaan het wat Hy sê. Ek glo nie Hy sou sy groot mag gebruik het om my te oorrompel nie. Nee, Hy sou na my geluister het. ’n Mens wat reg leef, sou met Hom oor sake kon redeneer. Ek is oortuig daarvan dat my Regter my sou vrygespreek het. “Ek gaan oos, en Hy is nie daar nie. Ek soek in ’n westelike rigting, maar ek kry Hom nie. Ek het in die noorde en in die suide gesoek, maar ek kon Hom steeds nie kry nie. Die Here ken my lewe. As Hy my sou toets, sal Hy uitvind dat ek soos suiwer goud is. Ek leef soos Hy wil hê ek moet leef. Ek volg Hom en draai nie links of regs van die koers af nie. Hy het sekere voorskrifte gegee wat ons moet navolg, en ek kom dit na. Ek vat sy woorde baie ernstig op. Maar Hy bly soos Hy is, Hy verander nie. Wie sal dit waag om Hom te probeer verander? Hy doen net wat Hy wil doen. Hy het planne met my. Hy sal sorg dat wat Hy vir my beplan het, sal gebeur. Dit lyk of Hy baie sulke planne het. Omdat ek weet dat die Here daar by my is, word ek vreeslik bang. Hoe meer ek daaroor dink, hoe banger word ek. Die Here maak my so bang dat my hart wil gaan staan. Alles voel donker om my. Dit is of ’n digte donkerte my gesig wil toemaak. Maar al voel dit so, die donker sal dit nie regkry om my stil te maak nie.” “Hoekom sê die Here nie presies wanneer dit tyd gaan wees om met mense af te reken nie? Want selfs die mense wat Hom ken, weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Hierdie slegte mense vat ander mense se grond deur die landmerke te verskuif. Hulle steel ander se vee en laat hulle tussen hulle eie vee wei. Hulle vat sommer ’n weeskind se donkie af. Of hulle vat ’n weduwee se bees as waarborg vir die geld wat sy hulle skuld. Hulle sal ’n arm mens soos niks uit die pad stamp. Party van die mense met wie dit ellendig gaan, sien dit is beter om liewer weg te kruip. Die armes moet soos wilde donkies in die woestyn loop en soek vir kos. Hulle moet hard werk om vir hulle kinders iets in die woestyn te ete te kry. Hulle tel koringare op ander mense se lande op wat reeds afgeoes is. Hulle pluk druiwe van ’n slegte mens se wingerd wat daar agtergebly het nadat die druiwe reeds afgeoes is. In die nag lê hulle sonder klere aan en slaap in die koue. Hulle het niks om hulle mee toe te maak nie. As dit in die berge reën, word hulle sopnat. Hulle klou aan die rotse vas, want daar is nie ander skuiling vir hulle nie. “Daar is misdadigers wat ’n weduwee se suigelingbaba steel. Party ryk mense sal arm mense se kind vat omdat hulle in die skuld is by hulle. Hierdie arm mense moet dan sonder klere loop en werk op die lande en dit terwyl hulle honger is. Hulle moet olie van olywe maak en druiwe trap by die wynpers. Intussen is hulle dood van die dors. ’n Mens kan die gekreun van mense in die stede hoor. Daar is ook mense wat gewond is wat roep dat iemand hulle moet kom help. Maar die Here steur Hom nie aan hierdie mense se gebede nie.” Job het verder gesê: “Daar is mense wat niks van die lig hou nie. Hulle wil nie doen wat in die lig aanvaarbaar is nie. Hulle doen oneerlike dinge in die geheim. Die moordenaar gaan net voor dagbreek uit en maak arm en behoeftige mense dood. In die nag steel hy. Die egbreker wag dat dit skemer moet word, want hy sê: ‘Niemand sal my dan sien nie.’ Hy maak ook sy gesig toe sodat niemand hom sal herken nie. In die nag breek hulle by huise in en in die dag kruip hulle weg. Hulle is nie vriende van die lig nie. Hulle voel baie gemaklik in die donker. Dit is vir hulle soos oggend. Hulle ken die gevare van die nag, maar dit pla hulle nie. “Hierdie slegte mense sal baie vinnig verdwyn. Dit sal wees asof hulle vinnig deur water weggespoel is. Hulle grond is verwens, dit sal nie vir hulle geluk bring nie. Niemand sal naby hulle wingerde wil kom nie. Die doderyk ruk so ’n slegte mens weg net soos droogte en hitte sneeu laat smelt. Selfs sy eie ma sal van hom vergeet. Die wurms sal hom eet. Niemand sal hom eens meer onthou nie. So ’n slegte mens word soos ’n boom gebreek. Hy teer op vroue wat nie kinders kan hê nie. Hy is ook nie goed vir die weduwees nie. “Maar die Here is baie sterk. Hy raak ontslae van die vername mense. Hulle dink dalk dat hulle uitgestyg het, maar hulle lewe is nie seker nie. Die Here kan hulle miskien laat voel dat hulle veilig is, maar Hy hou fyn dop hoe hulle lewe. Hulle is nou vir ’n rukkie op die kruin van die golf. Belangrike mense! Maar in ’n oogwink kan dit verby wees met hulle. Dan kom hulle hard af aarde toe en gaan net soos ander mense dood. Hulle word soos koring afgesny. Is daar iemand wat kan bewys dat dit nie so is nie? Wie kan bewys dat ek ’n leuenaar is? Wie gaan my woorde weerlê?” Bildad het Job geantwoord en gesê: “God is in beheer. Mense behoort Hom te vrees. Hy sorg dat daar vrede in die hemel is. Wie kan sy leërmag tel? Is daar iemand oor wie sy lig nie skyn nie? Hoe kan ’n doodgewone mens voor God staan en sê dat hy altyd reg doen en sonder skuld is? Die maan is nie helder genoeg en die sterre nie blink genoeg as jy dit met God vergelyk nie. As dit so is, is mense nog baie minder werd vir die Here. Die mens is eintlik maar net ’n wurm in sy oë!” Job het Bildad geantwoord en gesê: “Dis nou wonderlike hulp wat jy vir ’n mens gee wat swak en hulpeloos is. Hoe goed is jou raad nie vir iemand wat net mooi niks weet nie! Sjoe, jy wys dat jy sommer baie kennis het. Waar kom jy aan alles wat jy sê? Wie inspireer jou om hierdie dinge te sê? “Die mense wat reeds dood is, bewe voor God daar in die doderyk. Die doderyk is die plek van vernietiging. Dit lê oop en bloot voor God. God sprei die hemel in die noorde uit oor ’n leë gat. Hy laat die aarde in ’n leë ruimte hang. Hy maak die reën toe in dik wolkkomberse sonder dat dit skeur, al is die reën ook hoe swaar. Hy maak die volmaan toe met ’n wolk wat Hy daaroor trek. Hy het die horison getrek op die water om ’n grens tussen lig en donker te maak. Die pilare waarop die hemel staan, sidder en bewe vir sy kwaai woorde. Met sy krag laat Hy die oersee bedaar. Hy het die seemonster met sy vaardighede verpletter. Met sy asem het Hy die hemelruim skoon geblaas. Met sy krag het Hy die seemonster deurboor toe hy wou wegvlug. Hierdie dinge is maar ’n druppel in die emmer van wat Hy kan doen. Dit is maar net ’n gefluister oor sy krag. Wie sal die groot gedreun van sy mag kan verstaan?” Job het verder gepraat en gesê: “God het nie reg met my gemaak nie. Hy is magtiger as alles en almal, maar Hy het my lewe bitter gemaak. Hy is ’n lewende God en by sy Naam wil ek ’n eed neem. So lank as wat ek leef en God vir my asem gee, sal ek die waarheid praat. Daar sal nie ’n leuen oor my lippe kom nie. Maar dit kan julle weet, daar is nie ’n manier dat ek sal toegee dat julle reg is nie. So lank as wat ek leef, sal ek die feit verdedig dat ek onskuldig is. Ek sal bly sê dat my saak reg is en daarby hou ek. My gewete is skoon oor elke dag van my lewe. “My vyande is sleg en my opponente is onregverdige mense. Hulle moet daarvoor gestraf word. Daar is geen hoop vir mense wat God nie wil ken nie. Hy laat hulle doodgaan. Sal God na hulle luister as hulle na Hom roep wanneer hulle in die moeilikheid is? Sal hulle aan die Here kan dink en sal die gedagtes oor Hom wat by hulle opkom, hulle bly maak? Sal hulle die vrymoedigheid hê om enige tyd na die Here te roep? “Ek sal julle oor God se mag leer. Ek sal niks oor Hom wegsteek nie. Maar eintlik hoef ek dit nie te doen nie, want julle het almal al gesien hoe God dinge doen. Wat ek nie verstaan nie, is dat julle steeds al hierdie sinnelose dinge kwytraak. “God het besluit dat Hy slegte mense sal straf. So sal Hy hulle straf: as hulle baie kinders het, sal hierdie kinders óf in ’n oorlog óf van honger doodgaan. Die mense wat dit sal oorleef, sal van siektes in die graf beland. Hulle weduwees sal nie eers oor hulle treur nie. “Baie slegte mense het so baie geld dat hulle dit nie eers kan tel nie. Hulle het ook hope klere. Maar dit help niks nie, want eendag sal van die mense wat reg leef, daardie klere dra. Hulle sal ook hierdie slegte mense se geld onder hulle verdeel. Die huise wat hierdie kwaaddoeners gebou het, is soos ’n spinnekopweb of ’n skerm van takke. Dit is nie baie stewig nie en hou nie baie lank nie. “Die kwaaddoeners gaan slaap nog in die aand as ryk mense. Maar as hulle opstaan, ontdek hulle dat al hulle rykdom verdwyn het. Hulle word deur rampe getref wat soos vloedwater oor hulle spoel. In die nag word hulle deur ’n stormwind weggewaai. Die oostewind sal hulle gryp en hulle van hulle huise af wegwaai. Die wind tref hulle genadeloos. Hulle moet vlug vir die groot krag van die wind. Dit is of die wind hande klap en fluit van blydskap oor wat met hulle gebeur.” “Mense weet waar om vir silwer te myn en hoe om goud suiwer te kry. Hulle weet hoe om yster uit die grond te haal. Hulle weet ook dat koper uit erts gesmelt kan word. Dit is baie donker onder die grond, maar mense weet hoe om lig daar te bring en die donker weg te jaag. Die lig maak dit moontlik om die verste donker dele van die aarde deur te soek om erts in die hande te kry. Hulle sink skagte in die grond op plekke wat nie naby gebiede is waar mense bly nie. Hulle sak dan met toue af en swaai heen en weer, ver van die mense af. Graan groei in die grond en op die ou einde word dit brood wat mense eet. Maar onder die aarde gebruik hulle vuur om die rotse te breek en te smelt. In die klip kry hulle saffiere en ook poeierfyn goud. Die roofvoëls weet nie waar hierdie skatte is nie. Die valke kan dit ook nie sien nie. Die roofdiere kom nie daar nie. Daar is nog nie ’n leeu wat al daaroor geloop het nie. Die mense kap aan die hardste rotse. Hulle keer amper die berge om soos hulle aan die fondasie grawe. Hulle sny tonnels deur die rotse en soek ywerig na elke moontlike edelsteen wat hulle kan kry. Hulle dam die klein stroompies op op soek na die weggesteekte skatte wat hulle wil uithaal. “Maar waar kan ’n mens wysheid kry? Waar kom iets soos ‘om te kan verstaan’ vandaan? Niemand weet wat wysheid eintlik werd is nie. ’n Mens kry dit net nie onder die mense op hierdie aarde nie. Selfs die diep waters en die see sê: ‘Die wysheid is nie hier by ons nie.’ “’n Mens kan nie met goud vir wysheid betaal nie en met geld kan jy dit nie koop nie. Die waarde van wysheid kan nie eers vergelyk word met die fynste goud of kosbaarste diamante of saffiere nie. Goud en glans kan nie met die wysheid vergelyk word nie. Dit kan nie eers vir goue juwele verruil word nie. Koraal of kristal kan nie eers in dieselfde asem as wysheid genoem word nie. Dit is baie meer werd as pêrels. Selfs nie topaas wat uit Etiopië kom, kan daarmee vergelyk word nie. Dit is onmoontlik om die waarde van wysheid met suiwer goud te probeer bepaal. “Nou waar kom wysheid vandaan? Wat is die oorsprong van ‘verstaan’? Dit is weggesteek vir die mense van die aarde. Hulle kan dit net nie sien nie. Dit is selfs vir die voëls in die lug weggesteek. Ook die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net ’n gerug daarvan gehoor.’ “Net God weet hoe ’n mens daarby kan uitkom en dit in die hande kan kry. Want Hy kyk so ver as die einde van die aarde. Hy kan ook alles sien wat onder die hemel is. Hy bepaal hoe sterk die wind sal waai. Hy sê ook presies hoe groot die see en riviere sal wees. Hy maak reëls vir die reën en wys die pad vir die weerlig aan. Toe Hy dit alles klaar gedoen het, het Hy wysheid raakgesien en gekyk wat sy werd is. Hy het wysheid deeglik ondersoek en haar toe goedgekeur. Die Here het toe vir die mensdom gesê: ‘Om vir die Here ontsag te hê en Hom te respekteer is om regtig wys te wees. Om slegte goed uit te los is om regtig insig te hê.’” Job het verder gegaan om sy saak te stel en gesê: “Ag, hoe verlang ek na die dae en maande toe die Here nog vir my gesorg het. Toe was Hy by my soos ’n lig wat skyn. Omdat Hy dit vir my lig gemaak het, kon ek veilig in die donker loop. Vroeër in my lewe was God soos ’n huisvriend vir my, want toe was die Here nog by my, en my kinders om my. Dit was ’n tyd van oorvloed. Daar was ’n oormaat melk en die olie het by die groefies van die pers uitgestroom. “Dit was nog die goeie ou dae toe ek nog na die stadsingang toe gegaan het. Daar het ek tussen die leiers van die mense gaan sit. Van die jongmense het plek gemaak wanneer hulle my sien. Die ouer mense het selfs uit respek vir my opgestaan wanneer hulle my sien aankom het. Wanneer ek iets gesê het, het die leiers stilgebly om na my te luister. Die vername mense wat nog iets wou sê, het dan opgehou praat en nie verder hulle mening gegee nie. “Almal wat my gehoor het, het net goeie dinge vir my te sê gehad. Die mense wat my gesien het, was tevrede met wat ek gedoen het. Want ek het die armes gehelp wat gekla het. Ek het ook die weeskinders gehelp wat niemand gehad het om vir hulle te sorg nie. Ek het mense gehelp wat al die hoop opgegee het om te lewe, en hulle het net mooi dinge oor my lewe te sê gehad. Ek het dit reggekry om weduwees weer te laat sing omdat hulle bly is. Ek het reg geleef en mense eerlik en regverdig behandel. Ek het dit soos klere aangetrek en soos ’n band om my kop gesit. Ek was die blindes se oë en die lam mense se voete. Ek was soos ’n pa vir die armes. Ek het ook die belange van vreemde mense verdedig. Ek het die mag gebreek van mense wat ander onderdruk. Verder het ek hierdie onderdrukkers gedwing om hulle slagoffers vry te laat. “Ek het gedink dat ek baie oud sou word en in vrede in my eie huis sou doodgaan. Ek was soos ’n boom met wortels wat tot by die water gaan. In die nag val daar dou op die boom se takke. Ek het altyd binne-in my vol nuwe krag gevoel. Ek was sterk en gesond. “As ek gepraat het, het mense met aandag geluister. Hulle was stil, want hulle wou graag my raad en opinie oor dinge hoor. Na ek gepraat het, het niemand die behoefte gehad om iets meer te sê nie. Hulle was tevrede. Hulle het aanvaar wat ek gesê het. Net soos mense graag wou hê dit moes reën, net so graag wou hulle altyd hê ek moes praat. Dit was vir hulle soos lentereën wat hulle indrink. Hulle het weer nuwe moed gekry as ek vir hulle glimlag. My vriendelike gesigsuitdrukking was vir hulle baie werd. Ek het vir hulle besluit wat hulle moet doen, want ek was vir hulle ’n leier. Ek was soos ’n koning tussen sy manskappe. Ek het hulle getroos wanneer hulle moedeloos was.” Job het verder gepraat en gesê: “Maar nou word ek gespot deur mense wat jonger is as ek. Wie is hulle nou eintlik om dit te doen? Hulle pa’s is nie eens werd om saam met my skaaphonde die skape op te pas nie. Hulle is nie vir my veel werd nie, want hulle het nie krag oor nie. Hulle is maer en uitgeteer van die honger. Hulle het in die nagte in afgeleë en verlate plekke aan droë wortels gekou om aan die lewe te bly. Hulle het growwe blare geëet en besemboswortels gebrand vir hitte. Die mense het hulle oral weggejaag en vir hulle geskree asof hulle diewe is. Nou bly hulle maar in die droë beddings van die stroompies en kruip weg in grotte en rotsskeure. Daar waar hulle in die bosse was, het hulle geluide soos diere gemaak. Hulle het saam onder die bosse geskuil. Hulle was dom mense wat nêrens ’n goeie naam gehad het nie. Die mense in die samelewing het hulle uitgestoot. “Hulle seuns sing nou liedjies oor my om met my te spot. Hulle maak ’n gek van my. Hulle dink minder as niks van my nie. Hulle kom nie eens naby my nie, behalwe as hulle op my kom spoeg. God het my selfvertroue weggevat en my uitgelewer. Hulle maak nou met my net wat hulle wil. Hierdie gemene spul mense val my sommer openlik aan. Hulle stamp my dat ek daar trek. Hulle bring allerhande goed teen my in om my te vernietig. Hulle bring oral struikelblokke op my pad. Hulle kyk net hoe hulle my in die ellende kan dompel. Hulle weet ek het niemand om my te kom help nie. Hulle breek deur mure en storm deur die rommel op my af. Ek leef in vrees en bewing. Ek het geen waardigheid meer oor nie, dit het soos wind verdwyn. Dit het op alle gebiede met my baie goed gegaan, maar dit het verdwyn soos ’n wolk wat verbygaan. “Nou is my hart stukkend. Ek huil baie. Ek voel elke dag hoe ek in ’n diep ellende wegsak. In die nag het ek baie pyn in my bene. Dit voel of iets aanhoudend aan my bene kou en net nie ophou nie. Met sy groot krag het God my aan my klere gegryp. Dit het gevoel of my kraag my wil verwurg. Hy het my in die modder gegooi. Ek was van kop tot tone vol modder en as.” Job het vir die Here gesê: “Here, ek roep na U dat U my moet help, maar U wil nie luister nie. Ek staan voor U, maar U steur U nie aan my nie. U is eintlik baie wreed met my. U val my met mening aan. U laat die wind my optel en die storm my ruk en pluk. Ek weet U wil hê ek moet doodgaan. Dit is tog waarheen alle mense op pad is. “’n Mens sal mos nie die rug draai vir iemand wat in die nood is en om hulp roep nie. Ek het mos gehuil oor mense wat deur swaar tye gegaan het. Ek was ook baie ontsteld omdat die arm mense so swaarkry. Daarom het ek gedink dat dit met my goed sal gaan, maar slegte dinge het met my gebeur. Ek het lig verwag, maar donkerte het op my neergesak. Ek is baie ontsteld. Ek voel heeltyd onrustig. Elke dag is ’n dag van swaarkry. My lewe is donker, dit is nie sonskyn nie. Ek staan oop en bloot voor mense en roep uit dat iemand my tog moet help. Maar my geroep is nie veel meer werd as die gehuil van ’n jakkals of ’n volstruis nie. Die vel oor my hele lyf het swart geword. Ek gloei van die koors. My harp speel hartseer musiek en my fluit speel ’n tranerige lied.” Job het gesê: “Ek het ’n vaste besluit geneem om nooit na ’n meisie te kyk en haar te begeer nie. Wat het God besluit moet ons kry? Wat is ons erfdeel van Hom? Is dit nie ellende en mislukking vir mense wat nie reg doen nie, maar hulle met slegte dinge besig hou? Hy weet presies wat ek doen en van elke tree wat ek gee. “Het ek vir enigiemand gelieg of ooit iemand bedrieg? Laat God my eerlik weeg en besluit of ek onskuldig is. Partykeer raak mense die pad byster. Ander mense wil weer alles hê wat hulle sien. Nog ander doen goed wat nie reg is nie. As ek soos hierdie mense is, mag iemand anders dan oes waar ek gesaai het. En mag die graan wat ek geplant het, uitgetrek word. “As ek deur ’n vrou verlei is of as ek my buurman se vrou bitter graag wou hê, laat my vrou dan vir ’n ander man kos maak. Of erger nog, laat ander mans by haar slaap. As ek aan hierdie dinge skuldig is, is dit ’n skande. Dan moet ek gestraf word. Dit is ’n vuur wat ’n mens verteer en jy eindig in die dood. Dit sal alles verwoes wat ek besit. “Ek het nog altyd my werkers reg behandel. As hulle met ’n klagte of ’n probleem na my toe gekom het, het ek geluister. Ek sou mos nie by God daarmee verby kon kom as ek dit nie gedoen het nie. Hoe sou ek myself by Hom kon verdedig as Hy my daaroor sou uitvra en ek skuldig was? God het mos vir my en my werkers gemaak. Een en dieselfde God het ons almal gemaak. “Was ek ooit onwillig om arm mense te help? Het ek ooit weduwees teleurgestel wat wou hê dat ek hulle moes help? Sê my ’n bietjie, was ek ooit suinig met kos vir die honger weeskinders? Wou ek dit miskien nie met hulle deel nie? Nee, glad nie! Vandat ek nog sommer baie jonk was, het weeskinders en weduwees my na aan die hart gelê. Ek het nog altyd vir hulle gesorg. As ek iemand gesien het wat nie ’n plek gehad het om teen die wind en weer te skuil nie of nie klere gehad het nie, het ek gehelp. Ja, hulle kon nie uitgepraat raak omdat ek vir hulle wolklere gegee het nie. As ek ooit ’n weeskind uitgebuit het om my te help om ’n hofsaak te wen, mag my skouers losskeur en my arms dan afval. Ek sou nooit so iets gedoen het nie, want ek is bitter bang vir God se straf. Teen God se grootheid het ek geen kans nie. “Ek het nooit my vertroue op geld of goud gesit nie. Ek was ook nie ’n gelukkige en vrolike mens omdat ek ryk was en baie goed gehad het nie. Het ek ooit na die son gekyk wat helder skyn of na die maan wat so mooi is en in die hemel beweeg en my laat verlei om hulle te aanbid? As ek het, was ek ontrou aan die God van die hemel. Dan moet ek gestraf word. “Ek was nooit bly as my vyande probleme gehad het nie. Ek het my ook nie daarin verlekker as slegte goed met hulle gebeur het nie. Verder het ek nog nooit vir iemand gesê ek wens hy gaan dood nie. My werkers weet dat niemand nog ooit honger van my af weggegaan het nie. My deure het nog altyd oopgestaan vir vreemde mense. Hulle hoef nog nooit buite te geslaap het nie. Ek het ook nie die verkeerde goed wat ek al gedoen het soos ander mense probeer wegsteek nie. Ek was nie bang vir die massas mense of die minagting van my familie nie. Dit het ook nie gemaak dat ek stilgebly het oor wat ek gedoen het nie of dat ek bang was om uit my huis uit te gaan nie. “Ag, ek wens ek het iemand gehad wat net na my kant van die saak wou luister! Ek sal my handtekening gee om te bevestig dat ek die waarheid praat. Die Here moet my nou maar antwoord en sy klag teen my laat neerskryf. Ek sal dat almal weet wat die klag teen my is. Ek is nie skaam om dit vir almal te wys nie. Ek sal aan die Here verslag doen van alles wat ek gedoen het. Ek sal my kop optel as ek na God toe gaan. “As my grond my aankla en die vore wat ek geploeg het, huil omdat ek oneerlik was, of as ek oeste gekry het waarvoor ek nie betaal het nie of as ek die eienaars daarvan vermoor het, mag daar dan dorings groei in plaas van koring, en bossies in plaas van gars.” Hier het Job opgehou praat. Job se drie vriende wou nie langer met hom praat nie, want hy het bly sê dat hy onskuldig is. ’n Man met die naam Elihu het met Job en sy vriende begin praat. Elihu was die seun van Barakel. Hulle het van Bus af gekom en was deel van die Ramfamilie. Elihu het baie kwaad vir Job geword omdat hy bly sê het dat hy onskuldig is en dat God verkeerd is om hom te straf. Hy was ook kwaad vir Job se vriende omdat hulle Job nie kon oortuig het dat hy verkeerd is nie. Deur hom nie te oortuig nie, het hulle dit laat lyk of God verkeerd gedoen het en nie Job nie. Elihu het eers gewag voordat hy met Job gepraat het omdat die ander vriende ouer as hy was. Maar toe Elihu sien dat die ander drie niks meer het om te sê nie, was hy kwaad en het hy begin praat. Elihu het gesê: “Ek is jonk in vergelyking met julle; daarom was ek versigtig om sommer vir julle te vertel wat ek dink. Ek het gedink dat ouer mense eerste moet praat, want hulle het meer kennis en ervaring van die lewe. Maar die waarheid is dat dit God se Gees is wat ’n mens verstandig maak. Ouer mense is nie noodwendig verstandig nie. En net omdat mense oud is, beteken dit ook nie noodwendig dat hulle weet wat reg is nie. Daarom vra ek, luister na my. Ek wil graag vir julle sê wat ek dink. “Ek het gewag dat julle julle sê moet sê. Ek het met aandag geluister na al die argumente wat julle gebruik het en julle gesoek na woorde. Ek het mooi geluister, maar nie een van julle kon Job oortuig nie. Julle het ook nie antwoorde gehad vir al sy argumente nie. Moet nou net nie met die argument by my kom dat die regte ding sal wees dat God hom moet oortuig nie. Job het nou wel nie met my gepraat nie, maar ek sou hom beslis nie soos julle geantwoord het nie. Nou weet julle nie watter kant toe nie. Julle weet nie meer wat om te sê nie. Moet ek nou ook stilbly omdat julle niks meer te sê het nie? Nee, ek het my antwoord reg. Ek gaan beslis sê wat ek dink. Ek het baie dinge wat ek wil sê. Ek kan nie wag om te praat nie. Dit voel vir my die woorde gaan uitbars as ek nie nou gaan praat nie. Ek moet praat om uiting te gee aan hoe ek voel. Ek moet Job begin antwoord. Ek wil niemand voortrek of heuning om die mond smeer nie. Ek weet in elk geval nie hoe om dit te doen nie. As ek dit sou waag, sal God wat my gemaak het, soos blits van my ontslae raak.” Elihu het vir Job gesê: “Job, ek wil graag hê jy moet luister na wat ek te sê het. Ek is reg om te begin praat. Ek gaan reguit en eerlik sê wat ek weet. God se Gees het my gemaak en Hy gee my lewe. Job, ek wil jou uitdaag om my te antwoord as jy kan. Maak jou reg om jouself te verdedig. “Voor God is ek en jy gelyk. Ek is ook maar net uit klei gemaak. Jy hoef nie vir my bang te wees nie. Ek sal dit nie vir jou te moeilik maak nie. Ek het elke woord gehoor wat jy gesê het. Jy het gesê: ‘Ek voel nie skuldig nie, want ek het nie oortree nie. Ek is onskuldig, ek het niks verkeerds gedoen nie. Maar dit is God wat met my foutvind. Hy maak of ek sy vyand is. Hy sit boeie aan my voete. Ek is soos ’n iemand in die tronk. Hy hou elke beweging van my dop.’” Elihu het gesê: “Maar jy is verkeerd, Job, en ek sal jou sê hoekom ek van jou verskil. Jy sien, God is groter as ’n mens. Hoe kan jy God verwyt omdat Hy jou nie antwoord op alles wat jy gesê het nie? God praat op verskillende maniere met mense, maar hulle besef dit nie altyd nie. Vir party mense sal God ’n droom of ’n gesig in die nag gee as hulle vas op hulle bed lê en slaap. Op so ’n manier gee die Here dan vir hulle ’n duidelike waarskuwing om met verkeerde dinge op te hou en nie te veel van hulleself te dink nie. So probeer Hy keer dat mense doodgaan en in die graf eindig. “Ander kere weer probeer God mense reghelp deur siekte en pyn wat net nie ophou nie. Hulle verloor dan selfs hulle eetlus en wil nie eers van die lekkerste kos eet nie. Op die ou einde is hulle net vel en been, so maer is hulle. So beland hulle op die randjie van die graf, amper op die laaste van hulle lewe. “Daar is duisende spesiale boodskappers in die hemel. Hulle praat baiekeer namens ’n mens met God. As een van hulle net vir ’n mens kan wys wat reg is, sal God nie hard met so iemand werk nie. Hy sal sê: ‘Red hom dat hy nie doodgaan nie, want daar is ’n losprys vir sy lewe betaal.’ Dan sal sy liggaam weer fris en sterk voel soos toe hy jonk was. As hy bid, sal God hom antwoord. Hy sal die Here met groot blydskap aanbid. God sal weer die verhouding tussen hulle regmaak. Hy sal vir die mense vertel: ‘Ek het verkeerde dinge gedoen. Ek het my nie gesteur aan wat reg is nie, maar dit het my niks in die sak gebring nie. Dit was nie die moeite werd om so te leef nie. Maar God het gesorg dat ek nie in die dood beland het nie. Hy het my losgekoop. Nou lewe ek en kan ek die lig geniet.’ “Dit is wat God vir mense doen. Hy doen dit selfs twee of drie keer vir hulle. Hy bring mense uit die dood terug sodat hulle weer in die lig kan leef. Hulle is mense wat bly is oor die lewe. Gee ’n bietjie aandag, Job! Jy kan gerus na my luister. Bly ’n slag stil as ek praat. Maar as jy nog iets te sê het, sê dit vir my. Ek sal graag vir jou wil sê waar ek dink dat jy reg is. Maar andersins, luister na my! Bly stil sodat ek jou kan leer wat wysheid is.” Elihu het gesê: “Luister na my, al julle verstandige mense, julle wat kennis en besondere insig het. ’n Mens proe gewoonlik aan kos om die smaak te toets. Daarom moet ’n mens mooi luister en toets wat ander sê. Ons moet elkeen probeer uitvind wat reg is en dan besluit ons saam wat die beste is. Want Job het gesê: ‘Ek is onskuldig, maar God keer dat ek reg behandel word. Al is ek onskuldig, noem mense my ’n leuenaar. Ek sit met ’n ongeneeslike siekte en ek het niks eens verkeerd gedoen nie.’ “Hierdie Job is darem vir jou arrogant. Hy beledig die Here net so maklik soos hy water sou drink. ’n Mens kry hom in die geselskap van mense wat verkeerde dinge doen. Die kwaaddoeners is sy vriende. Hy het selfs gesê ’n mens mors jou tyd om God te probeer gelukkig hou.” Elihu het verder gegaan en gesê: “Almal van julle wat verstandig is, luister na my. Julle weet, God doen nooit slegte en verkeerde dinge nie. Hy betaal elkeen volgens wat hy gedoen het. Jy sal kry wat jy verdien. Wat waar is, is dit: God doen nie verkeerd nie. Hy is ook nie onregverdig nie. Die Here het die sê oor wat in hierdie wêreld aangaan. Die hele wêreld is in sy mag. As die Here sy Gees en die lewe wat Hy gegee het, sou wegvat, sal alle mense daar en dan doodgaan. Mense sal net weer stof word. “As jy verstandig is, sal jy luister wat ek te sê het. Sou God kon regeer as Hy regverdigheid haat? Wil jy probeer bewys dat God wat regverdig en magtig is, skuldig is? Hy sê vir ’n koning dat hy niks werd is nie en vir regeringsleiers dat hulle sleg is. Hy trek nie belangrike mense voor nie. Hy gee ook nie meer aandag aan die rykes as aan die armes nie. Hy het hulle almal gemaak. Enigeen kan skielik in die nag doodgaan. As God net aan hulle raak, gaan hulle dood. Mense wat mag het, verdwyn van die toneel sonder dat enigiemand iets daarmee te doen het. “Die Here kyk hoe mense leef. Hy sien ook alles wat hulle doen. Mense wat slegte dinge doen, moenie dink dat daar iewers ’n plek is wat donker genoeg is om weg te kruip nie. Dit is nie nodig dat mense eers voor Hom moet verskyn voordat Hy kan besluit wat om met hulle te doen nie. Hy hoef nie eens te gaan kyk wat hierdie magtige leiers aangevang het voordat Hy hulle vernietig en ander in hulle plek aanstel nie. Hy weet presies wat hulle doen. Hy stoot hulle sommer oornag van hulle troontjies af en vernietig hulle. Hy straf hulle oop en bloot waar almal kan sien wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle is nie meer aan die Here lojaal nie. Hulle steur hulle nie aan wat Hy wil hê hulle moet doen nie. Hulle het die arm mense en mense wat swaarkry so sleg behandel dat God hulle noodkrete gehoor het. As die Here stilbly, wie kan Hom daaroor kritiseer? As Hy niks met mense te doen wil hê nie, is almal in die moeilikheid. Hy keer dat mense regeer wat niks met Hom te doen wil hê nie. Hy wil nie hê dat hulle mense verkeerd moet lei nie. “Wat ’n mens vir God behoort te sê, is: ‘Ek het verkeerd gedoen, maar ek sal dit nie meer doen nie.’ Of ’n mens moet sê: ‘Wys my as daar iets is wat ek nie raaksien nie. As ek iets verkeerds gedoen het, sal ek ophou om dit te doen.’ “Jy weier nou om te erken dat jy skuldig is, Job. Sê my, moet God nou sy straf verander omdat jy nie met Hom saamstem nie? Job, jy moet maar self hieroor besluit, nie ek nie. Sê gerus vir ons wat jy weet! Mense wat verstandig is en insig het en hoor wat ek sê, stem met my saam as ek sê: ‘Job, jy weet nie wat jy praat nie. Wat jy sê, maak nie sin nie.’ Job, jy moet op die moeilikste manier moontlik getoets word, want jy praat soos iemand wat niks van God dink nie. By al die ander dinge wat jy verkeerd gedoen het, kom jou opstand teen God nou ook nog by. Met jou houding tart jy die Here. Jy hou net aan om God te kritiseer.” Elihu het aangehou praat en gesê: “Job, dink jy dit is reg om aan te hou sê dat jy voor God onskuldig is? Terselfdertyd vra jy: ‘Wat help dit my om reg te leef? Hoe is ek nou beter daaraan toe as wat ek sou gewees het as ek verkeerde dinge gedoen het?’ Ek sal jou en al jou vriende hierop antwoord. Kyk na die hemel, dan sal jy sien hoe hoog die wolke bokant jou is. As jy verkeerd doen, dink jy dit doen iets aan God? Nee, jy kry niks daardeur reg nie. Al hou jy ook aan om verkeerd te doen en weer verkeerd te doen, dit doen net mooi niks aan Hom nie. Wat help dit Hom as jy reg doen? Hy het niks nodig wat jy vir Hom kan gee nie. As jy verkeerd doen, is dit sleg vir mense soos ek en jy. As jy reg doen, help dit weer ander mense. “As mense baie swaarkry, kla hulle steen en been. As iemand wat baie mag het, hulle verdruk, roep hulle dat iemand hulle moet kom help. Maar hulle vra nie: ‘Waar is God wat ons gemaak het? Waar is die Here wat ons kan laat aanhou sing al kry ons hoe swaar? Waar is Hy wat ons meer verstand gegee het en slimmer gemaak het as die diere van die aarde en die voëls van die hemel?’ “Maar as hulle tog na die Here roep om hulle te help, antwoord Hy hulle nie. Die arrogansie van slegte mense stoot Hom af, Hy hou niks daarvan nie. Die waarheid van die saak is dat God Hom nie aan ’n sinlose geroep steur nie. Hy laat dit by Hom verbygaan. “Maar Hy sal nog minder na jou luister as jy kla dat jy nie ’n kans kry om Hom te sien nie; as jy kla dat jou saak al lank voor Hom lê en wag. Hy sal ook nie na jou luister as jy nou sê dat Hy nie mense straf as Hy kwaad is nie. Ook nie as jy sê dat Hy Hom nie daaraan steur as mense verkeerd doen nie. Nee, Job, jy praat nou twak! Jy weet regtig nie waarvan jy praat nie.” Elihu het aangehou praat en gesê: “Wees nog so ’n bietjie geduldig met my. Ek wil nog ’n paar dinge namens God sê. Ek het baie voorbeelde wat ek kan gebruik om te bewys dat God regverdig optree. Ek praat regtig die waarheid en my kennis is puik. “God is groot, en tog sien Hy op niemand neer nie. Hy het groot mag en verstaan alles. Hy laat die slegte mense doodgaan, maar Hy sorg dat mense wat swaarkry, reg behandel word. Hy hou ’n oog oor mense wat reg doen. Hy gee eer aan hulle en laat hulle in konings se geselskap tuis voel. Dit sal altyd so wees. As hulle in die moeilikheid kom en nie kan loskom nie omdat hulle vasgebind is, wys Hy vir hulle wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle kry swaar omdat hulle arrogant was en verkeerd gedoen het. Hy kry hulle aandag en laat hulle baie mooi verstaan dat hulle moet ophou om verkeerde dinge te doen. “As hulle aan God gehoorsaam sal wees en Hom dien, sal dit hulle hele lewe lank baie goed met hulle gaan. Maar as hulle nie na die Here wil luister nie, sal hulle doodgaan. Hulle sal doodgaan omdat hulle nie kon insien dat hulle reg moes lewe nie. Mense wat hulle nie aan God steur nie, troetel graag slegte gevoelens. Selfs al straf God hulle, vra hulle Hom nie om hulle te help nie. Hulle gaan jonk dood omdat hulle hulle lewe verwoes het met die skandelike dinge wat hulle gedoen het. Die Here gebruik mense se swaarkry om hulle iets daardeur te leer. Hy wil hê dit moet hulle leer om gehoorsaam te wees.” Elihu het verder vir Job gesê: “God het jou uit allerhande moeilikhede gehou. Hy het jou laat voel wat dit is om ’n vry mens te wees. Jou lewe was gemaklik en in jou huis was daar oorvloed. Maar jy het heeltemal te veel te sê oor die straf wat slegte mense moet kry. Al waaraan jy kan dink, is die regsake en straf. Pas op dat rykdom jou nie die spoor byster laat raak nie. Moet ook nie dat ’n groot omkoopgeskenk jou op die verkeerde pad laat beland nie. Nie jou rykdom en niks wat jy probeer doen, sal jou uit jou swaarkry kan verlos nie. Moenie wens dat dit nag moet word nie, want dit is juis die tyd dat mense doodgaan. Pas op! Moenie nou verkeerde dinge begin doen nie. Die doel van jou lyding was juis om jou van so ’n lewe af weg te hou. “God se mag is ongelooflik groot. Wys my iemand wat ’n mens beter as Hy kan leer. Net mooi niemand kan vir Hom sê wat om te doen nie. Wie sal dit waag om vir Hom te sê Hy doen verkeerd? Dit is ’n baie beter idee om God te prys vir wat Hy al gedoen het. Daar was al mense wat lofliedere tot sy eer gesing het. Doen jy dit ook. Alle mense kan die dinge sien wat Hy doen, al is dit ook net op ’n afstand. “God is groot, maar ek dink nie ons weet regtig hoe groot nie. Ons weet ook nie hoe oud Hy is nie. Hy laat die waterdamp opstyg en maak daarvan reën. Die reën val dan uit die wolke op die mense neer en almal kan dit geniet. Niemand kan verstaan hoe die wolke saampak en die donder uit die hemel aangerol kom nie. Die weerlig blits oral in die hemel terwyl die bodem van die see toe onder die water bly. Aan die een kant gebruik Hy hierdie dinge om mense te straf, maar aan die ander kant sorg die reën vir meer as genoeg kos. Hy hou die weerligstrale in sy hande en beveel waar hulle moet slaan. Die gedreun van die donderweer wys dat God daar is. Die storm maak dit duidelik dat Hy baie kwaad is.” Elihu het gesê: “So ’n storm maak my bang. Dit laat my hart wild klop. Hoor hoe dreun die donderweer. Dit is God se stem wat aangerol kom. Hy laat die dreuning oor die hemel klink. Dit lyk of die weerlig oor die hele aarde slaan, selfs tot in die verste uithoeke. Daarna kan ’n mens die gedreun van die weer hoor as God sy magtige stem gebruik. Sy stem dreun oorverdowend hard. As God in die donderweer praat, is dit ongelooflik. Wonderlike goed gebeur wat ons nie eens kan dink om te verstaan nie. Hy gee die sneeu opdrag om op die aarde te val. Hy laat ook die reën hard neerstort. Wanneer dit gebeur, laat Hy al die mense ophou werk sodat hulle net weer kan besef wat Hy alles doen. Ook die diere kruip in hulle skuilplekke weg. Die stormwind begin waai en die wind uit die noorde bring die koue. God se asem laat die water ys. Groot panne water vries toe. Die wolke bult uit van al die vog wat dit hou. Hy laat weerlig tussen die wolke deur flits. Hy laat die wolke rondmaal soos Hy wil. Oor die hele wêreld doen die wolke presies wat Hy hulle sê om te doen. Soms stuur die Here die storms en die reën om die mense te straf. Ander kere om te sorg dat daar water op die aarde is of doodgewoon om te wys dat Hy die aarde en sy mense liefhet.” Elihu het vir Job gesê: “As jy nou geluister het na wat ek gesê het, word net ’n bietjie rustig. Dink daaraan hoe ongelooflik alles is wat God doen. Kan jy verstaan hoe God die wolke beheer en die weerlig uit die wolke laat blits? Kan jy verstaan hoe Hy dit regkry om die wolke so in die lug te laat hang? Dit is die werk van ’n genie! As die wind uit die suide ophou waai, is alles doodstil. Dan kry die mense swaar van die vreeslike hitte, maar hulle kan niks daaraan doen nie. Kan jy soos God die hemel oopspan? Hy laat die hemelruim die hitte soos ’n groot spieël weerkaats. “Job, sê vir ons wat ons vir die Here moet sê. Ons is te dom om ons eie argumente uit te dink. Moet ek eers vir God sê dat ek my saak wil stel? Moet ’n mens praat as jy so deurmekaar is? Die wind het die wolke voor die son weggewaai. Nou skyn die son helder, maar dit is te skerp vir ’n mens om in te kyk. God kom uit die noorde in ’n goue glans. Sy glans is so groot, dit maak ’n mens eintlik bang. God se mag is te groot vir ons om te verstaan. Sy mag is baie groot, maar tog bly Hy regverdig. Hy is baie eerlik en Hy is teenoor niemand onregverdig nie. Dit is daarom dat mense Hom oral eer en respekteer. Maar Hy hou nie van mense wat hulle slim hou nie.” Die Here het toe met Job uit ’n stormwind gepraat en gesê: “Wie is dit wat met dom vrae my besluite in twyfel trek? Maak jou reg vir ’n sarsie vrae wat in jou rigting kom wat jy moet antwoord. “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? As jy so danig baie weet, sê My! Wie het besluit hoe groot die aarde moet wees? Toe, jy weet dit tog seker, nie waar nie? Wie het die aarde afgemeet? Waarop is die voetstukke van die aarde neergesit? Wie het die hoeksteen gelê? Die môresterre het saamgesing en al die hemelse inwoners het van blydskap geskreeu toe dit gebeur het. Wie het vir die see grense gemaak toe dit onstuimig begin uitborrel het? Ek het die see met donker wolke toegemaak. Ek het besluit hoe ver die see kon spoel. Ek het die strande gegee om die see op sy plek te hou. Ek het gesê: ‘Jy mag net tot hier kom en nie verder gaan nie. Hier moet jou skuimende golwe stop!’ “Job, het jy al ooit vir die oggend gesê om te begin en die dag laat verstaan wanneer om te breek? Die daglig versprei tot by die verste dele van die aarde. Die lig wat oral skyn, maak dit onmoontlik vir die misdadigers om weg te kruip. Die lig skud hulle uit hulle wegkruipplekke uit. As die dag breek, sien ’n mens eers net die vorm van die berge en die valleie op die aarde. Dit lyk soos ’n vorm wat in klei afgedruk is of die voue van ’n stuk klere. Die lig maak dit vir die misdadigers moeilik om mense te pla. Dit keer hulle om met hulle geweld voort te gaan. “Job, het jy al gaan kyk na die bronne waaruit die see borrel? Het jy al diep in die see op die bodem rondgeloop? Het iemand al vir jou gewys waar die hekke van die dood is? Het jy die ingang na die doderyk gesien? Het jy enigsins ’n idee hoe groot die aarde is? Sê vir My as jy dit alles weet! “Weet jy waar die lig vandaan kom? Ken jy die blyplek van die donker? As jy dit weet, sal jy hulle mos daarheen kan terugvat. Maar natuurlik weet jy dit. Jy was toe mos al gebore en jy leef mos al lank. “Was jy al by die plekke waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plekke gesien waar die hael opgegaar word? Ek het dit daar reggehou vir tye wanneer daar moeilikheid en oorlog sal wees. Hoe kom ’n mens by die plek uit waar die son opkom? Waar begin die oostewind oor die aarde waai? “Wie het ’n kanaal oopgekap vir die reën wat neerstort? Wie het ’n pad vir die donderstorm oopgemaak? Wie maak dat die reën op die dorre woestynland val waar nie ’n enkele mens te sien is nie? Wie sorg dat ’n droë en dor land nat word sodat daar gras in die grond kan groei? “Het die reën ’n pa? Waar kom dou vandaan? Wie is ryp en ys se ma? Waar kom dit vandaan? Die boonste laag water wat die diepwater toemaak, vries so hard soos klip. “Kan jy die Sewester met ’n band vasbind? Of kan jy die bande van Orion losmaak? Het jy enigsins beheer oor die sterre? Kan jy die sterrebeelde op hulle vasgestelde tyd laat opkom? Kan jy die Beer met haar kleintjies oor die hemelruim laat beweeg? Weet jy hoe die reëls van die hemel werk sodat alles daar reg loop? Weet jy watse invloed dit op die aarde het? “Kan jy vir die wolke skreeu en dan laat hulle reën op jou neerstort? Kan jy weerlig laat slaan waar jy wil hê dit moet? Sal die weerlig jou gehoorsaam? Wie gee ’n innerlike aanvoeling vir dinge en wie maak dit moontlik om iets te kan verstaan? Wie het die vermoë om al die wolke te kan tel? Wie kan hierdie waterhouers van die hemel omkeer sodat dit reën? Die reën laat die droë grond in modderklonte verander. “Kan jy vir die leeuwyfie haar prooi jag? Kan jy vir die jong leeus genoeg gee om te eet daar waar hulle in hulle blyplekke lê of wegkruip terwyl hulle wag dat die jag moet klaarmaak? Wie gee vir die kraaie kos as hulle rondskarrel omdat daar nie kos is nie, wanneer hulle kleintjies na God roep om vir hulle kos te gee?” “Weet jy wanneer dit tyd is vir die bergbokke om te lam? Het jy al bygestaan as ’n wildsbokooi geboorte gee? Weet jy hoe lank sy die ongebore lam dra? Weet jy wanneer hulle moet lam? Wanneer dit tyd is dat die lam gebore moet word, hurk die ooi neer vir die geboorte. Die klein bokkies groei en word in die veld groot. As hulle uitgegroei is, gaan hulle van hulle ouers af weg en kom nooit weer terug nie. “Wie het die wilde donkies losgelaat en hulle vry laat rondloop? Ek het hulle in die woestyn laat bly. Die soutpanne was hulle weiplek. Hulle bly van die geraas in die stad af weg. Hulle steur hulle ook nie aan die geskree van mense wat hulle rondjaag en wil tem nie. Hulle loop en wei in die berge en soek na elke groen grassie wat hulle kan kry om te eet. “Sal die buffel bereid wees om vir jou te werk? Sal hy in die aand by jou voerbak kom staan en eet? Kan jy ’n buffel voor ’n ploeg inspan? Sal hy jou landerye vir jou ploeg en eg? Die buffel het geweldige krag. Sal jy op sy krag staatmaak om jou harde werk vir jou te doen? Kan jy die buffel vertrou om jou graan vir jou na die dorsvloer toe te bring? “Die volstruis is vrolik en klap haar vlerke. Haar vere en vlerke is pragtig. Sy los haar eiers bo-op die grond en laat die grond dit warm hou. Sy dink nie eers daaraan dat iemand op die eiers kan trap of dat die wilde diere hulle kan breek nie. Sy werk rof met haar kuikens asof dit nie haar eie is nie. Dit lyk nie of dit haar pla dat haar moeite om hulle uit te broei verniet kan wees nie. God het haar nie baie slim gemaak nie. Sy het nie veel verstand gekry nie. Maar die keer as sy opspring en begin hardloop, maak sy ’n gek van ’n perd en sy ruiter. Sy hardloop skoon onder hulle uit. “Job, gee jy miskien vir die perd sy krag? Het jy gesorg vir die golwende maanhare op die perd se nek? Maak jy dit vir hom moontlik om soos ’n sprinkaan te kan spring? Het jy vir die perd sy trotse snork gegee waarmee hy mense afskrik? Hy kap met sy hoef in die grond en wys sy krag. As hy in ’n oorlog ingaan, ken hy nie so iets soos vrees nie. Geen wapen sal hom laat weghardloop nie. Al raas en blink die wapens, dit skrik hom nie af nie. Hy skud en bewe van spanning en kap in die grond. Hy kan nie wag dat hulle die trompet blaas wat die teken gee om aan te val nie. Hy snork as hy die klank van die beuel hoor. Hy snuif in die lug asof hy die geveg op ’n afstand kan ruik. Hy kan hoor wanneer die offisiere bevele uitskreeu. “Job, is dit jou insig wat die valk laat sweef as hy sy vlerke na die suide toe span? Het jy vir die arend gesê om sy nes hoog in die berge te bou? Hy bly op die rotse en maak sy nes op skerp kranse. Dit is soos ’n veilige plek om in te skuil. Al is dit ver, kyk hy daar van bo af en soek vir hom ’n prooi om te eet. Die arend is altyd daar waar iets dood is. Sy kuikens vreet die bloederige vleis.” Die Here het vir Job gesê: “Wil jy ’n saak teen My maak en My reghelp? Jy stry met My, maar het jy die antwoorde?” Job het die Here geantwoord en gesê: “Ek is eintlik niks! Wat kan ek U antwoord? Ek sal my hand op my mond sit en stilbly. Ek het alreeds te veel gesê, ek het niks meer om te sê nie.” Die Here het Job toe uit ’n storm geantwoord en gesê: “Maak jou reg en wees sterk, Ek het ’n paar vrae wat Ek jou wil vra. Ek soek antwoorde. Wil jy sê wat Ek oor jou besluit het, is nie reg nie? Wil jy bewys Ek is skuldig sodat jy kan sê jy is reg? Dink jy jy is net so sterk soos Ek? Kan jou stem uit die donderweer dreun soos Myne? Tree op met trots en wees eerlik. Jy moet goed voel oor jouself. Raak van al die woede in jou ontslae. As jy iemand sien wat hoogmoedig is, bring hom af aarde toe. Jy moet die hoogmoedige mense wat jy sien, verneder. En mense wat verkeerde dinge doen, vernietig hulle daar en dan. Begrawe hulle almal in die grond en bind hulle vas in die graf. As jy dit kan doen, sal Ek erken dat jy die krag het om jouself te kan red.” Die Here het verder gesê: “Kyk na die seekoei: Ek het die seekoei gemaak net soos Ek jou ook gemaak het. Hy eet gras soos ’n bees. Hy het baie krag in sy lyf en sy maagspiere is baie sterk. Sy stert is so reguit soos ’n sederboom en sy boudspiere is styf saamgevleg. Sy bene is so hard soos koperpype en sy ledemate soos ysterstawe. Dit is die beste voorbeeld van God se ongelooflike handewerk. Hy staan bo almal uit. Net God wat hom gemaak het, kan hom baasraak en verslaan. Die beste plek vir hom om sy kos te kry, is in die berge. Hy wei daar waar die ander diere van die veld speel. Hy lê graag onder die waterplante, weggesteek tussen die riete in die moeras. Die skaduwee van die waterplante en die wilgerbome om hom steek hom weg waar hy in die water van die rivier lê. Hy skrik nie vir water wat in vloed is nie. Selfs al kom die Jordaan af en styg tot teen sy mond, bly hy rustig. Wie sien kans om hom reg van voor aan te pak? Niemand is dapper genoeg om ’n ring in sy neus te sit en hom weg te lei nie.” Die Here het verder vir Job gevra: “Job, sal jy ’n draak met ’n hoek of met ’n tou om sy bek kan vang? Kan jy ’n tou deur sy snoet sit of ’n haak deur sy kakebeen steek? Sal hy jou soebat om sag met hom te werk of jou mooi vra om hom uit te los? Sal hy ’n ooreenkoms met jou maak om vir altyd vir jou te werk? Kan jy hom mak maak soos ’n voëltjie om ’n troeteldier vir jou te wees? Sal jy hom aan ’n leiband sit vir jou dogters? Sal daar handelaars wees wat oor hom bie? “Sal hulle hom onder mekaar probeer verkoop? Kan jy met harpoene deur sy vel skiet of met spiese deur sy kop steek? As jy hom kaalhand probeer aanpak, sal jy die geveg tussen julle nooit vergeet nie. Ek verseker jou, jy sal dit nooit weer probeer doen nie. “Nee, niemand het ’n kans om die draak te vang nie. As jy hom sien, sak jou moed al in jou skoene. “As niemand dit sal waag om die draak te pak nie, wie kan dan enigsins dink om My aan te vat? Wie wil My uitdaag en eise aan My stel? Alles op die aarde behoort aan My. “Ek wil nog verder praat oor die krag in die draak se bene en sy hele lyf. Wie kan deur sy dik, skubberige vel sny en wie kan sy vel aftrek? Wie kan sy kake ooptrek? Sy tande is iets vreesliks. Sy skubbe op sy rug lê styf teen mekaar en beskerm hom soos ’n skild. Hulle is so dig op mekaar dat lig nie eers tussenin kan kom nie. Die skubbe sluit so dig teen mekaar dat niks tussen hulle kan inkom nie. Hulle kan nie van mekaar losgemaak word nie. “As hy nies, sien ’n mens net vonke. Sy oë is so rooi soos die son wat in die oggend opkom. Vlamme en vonke kom by sy mond uit. By sy neus borrel rook uit. Dit lyk amper soos stoom wat by ’n pot uitborrel wat op ’n vuur staan. Sy asem is so warm dat dit kole kan laat gloei, want vlamme kom by sy mond uit. “Die geweldige krag in sy nek maak mense oral waar hy gaan verskriklik bang. Sy vleis is hard en sit baie styf aan hom vas asof dit gegiet is. Sy hart is so hard soos ’n klip. Dit is so hard soos ’n maalklip. As hy opstaan, vlug selfs die gode. Hulle is bang hy verpletter hulle met sy stert. Daar is geen skerp wapen wat die draak in sy spore kan laat vassteek nie. Hy dink niks van yster nie, hy maak asof dit ’n stukkie strooi is. Hy maak met koper of dit ’n stuk verrotte hout is. Hy vlug nie as mense hom met pyle skiet nie. ’n Klip wat hom tref, maak net so min indruk op hom as ’n stukkie strooi. Jy kan hom maar met ’n kierie slaan, dit maak hom net mooi niks nie. Hy lag met minagting as hulle hom met spiese gooi. Die skubbe op sy maag is so skerp soos potskerwe. Hulle skeur die grond oop as hy homself deur die modder sleep. “As hy in die water rondspartel, lyk dit soos water wat in ’n pot kook. Die water van die meer skuim en borrel soos kokende olie. Hy los ’n blink streep agter hom op die water. Dit lyk amper of die see wit geword het van al die skuim. Daar is op aarde nie nog so ’n dier soos hy wat geen vrees ken nie. Hy dink absoluut niks van die ander diere nie, nie eers dié wat groter is as hy nie. Hy het geen respek vir hulle nie. Hy is die koning van al die diere.” Job het die Here geantwoord en gesê: “Ek weet dat U alles kan doen. Daar is niemand wat u planne kan laat skeefloop as U eers ’n besluit geneem het nie. U het gevra: ‘Wie is dit wat my besluite in twyfel trek, maar self niks kennis het nie?’ Dit is ek. Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan. “U het gesê: ‘Luister net ’n slag as Ek praat. Ek het vrae vir jou wat Ek wil hê jy moet antwoord.’ “Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het, gooi ek grond en as op my kop.” Toe die Here klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas, wat van Teman af kom, gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie soos Job die waarheid oor My gepraat nie. Job behoort aan My. Vat sewe jong bulle en sewe ramme en gaan na Job toe. Gaan offer die diere daar by hom. Maar onthou, dit is vir julle, nie vir hom nie. Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie straf soos Ek eintlik moet oor die dom goed wat julle gesê en gedink het nie. Job het die waarheid oor My gepraat, julle nie.” Elifas, Bildad en Sofar het gedoen wat die Here gesê het hulle moet doen. Die Here het toe na Job se gebed geluister. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here sy omstandighede verander. Die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy vroeër gehad het. Job se familie en vriende het na sy huis toe gekom en hulle het saam met hom geëet. Hulle het vir hom kom sê hoe jammer hulle is oor alles wat die Here hom laat deurmaak het. Hulle het hom getroos en moed kom inpraat. Hulle het ook elkeen vir hom presente gebring. Hulle het vir hom geld en goue ringe gegee. Die Here het gesorg dat dit baie beter met Job gegaan het in die tweede deel van sy lewe as in die begin. Hy het nou sommer baie vee gehad. Daar was 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies. Hy het ook weer vir Job sewe seuns en drie dogters gegee. Hy het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde een Keren-Puk. Job se drie dogters was die mooiste van al die vroue in die hele land. Hulle sou net soos hulle broers erf die dag as hulle pa doodgaan. Job het nog 140 jaar geleef. Hy het vier geslagte van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gesien. Job is as ’n ou man dood. Hy het ’n lang en goeie lewe gehad. God hou sommer baie van jou, want jy leen nooit jou ore aan slegte mense uit nie. Jy hardloop nie agter elke nuwe sonde op die mark aan nie. Jy is ook nie bevriend met daardie spul wat met God spot nie. God is baie bly omdat jy sy Woord geniet. Jy lees dit dag en nag sonder om moeg te word. Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan. Hierdie boom dra op die regte tyd baie vrugte en sy blare bly groen. Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen. Daarom gaan dit baie goed met jou. Met elkeen wat nie doen wat God sê nie, gaan dit bitter sleg. Hulle sondes laat hulle lewe uitmekaarval. Daarom sal daar nie vir hulle plek wees wanneer God eendag voor almal sê wie aan Hom behoort nie. God wys vir mense wat Hom liefhet hoe om elke dag te leef, maar slegte mense verdwaal vir altyd in hulle sonde. Waarom maak slegte mense in die geheim planne teen die Here? Waarom dink hulle allerhande dinge uit wat tog niks help nie? Wêreldleiers probeer belangrik lyk. Hulle probeer saamspan teen die Here en teen die koning wat Hy spesiaal gekies het. Hierdie mense beplan en sê: “Laat ons in opstand teen hulle kom en ons vrymaak van hulle.” Maar God, daar in die hemel, lag lekker vir hulle. Die Here skeer gek met hulle. Dit maak die Here kwaad en Hy bly nie stil nie. Sy woorde laat hulle bewe van skrik: “Ek self het hom as koning aangestel op die heilige berg in Jerusalem.” Laat ek julle vertel wat die Here vir my gesê het: “Jy is my seun. Van hierdie dag af is Ek jou Vader. Jy moet net vra, en Ek sal jou die heerser oor baie mense, ja, oor die hele wêreld maak. Jy sal hulle met ’n ysterhand regeer. Die een wat nie na jou luister nie, gaan teëspoed kry.” Gebruik nou julle verstand, leiers van hierdie wêreld; wees wakker. Ken julle plek en dien die Here met respek; maak sy Naam groot. Dien Hom nederig. Hou Hom tevrede en moenie Hom kwaad maak nie. As julle Hom kwaad maak, gaan julle swaarkry, glo my. Moet dit nie eens probeer nie. As jy aan die kant van die Here gaan staan, sal jy nie jammer wees nie. *** Here, kyk net hoe baie mense rebelleer teen my. Hulle word net meer en meer. ’n Klomp van hulle wil my aan die keel gryp. Hulle lag my uit en sê: “God kan hom tog nie help nie!” Maar, Here, U beskerm my van alle kante teen hulle. Hulle sal my nie in die grond in trap nie. U help my om nie die handdoek in te gooi nie. Ek roep so hard as wat ek kan tot die Here. Hy hoor my as ek bid. En Hy antwoord my. In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en rondrol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker, want ek weet die Here sal my krag gee om my probleme op te los. Ek is nie bang nie, al staan ’n skare mense reg rondom my, gereed om my aan te vat. Staan op, Here! O my God, red my! U het almal stilgemaak wat my wil seermaak. U kan mense wat U nie dien nie, se mond maklik stilmaak. Dit is net die Here wat ’n mens kan red. Hou tog u hand oor u kinders, Here! *** God wat my red, help my asseblief wanneer ek by U hulp kom vra! U sorg altyd vir my. U het in die verlede uitkoms gee. In ’n krisis het U ’n sagte hart. Wees asseblief goed vir my. Luister na my gebed. Julle slegte spul, hoe lank gaan julle my naam nog deur die modder sleep? Hoe lank gaan julle oneerlik wees en aanhou lieg? Maak oop julle oë! Besef dat die Here baie omgee en wonders doen vir mense wat agter Hom aanloop. Hy help my wanneer ek by Hom hulp kom vra. Wanneer jy kwaad word, moenie dan verkeerde dinge doen nie. Gaan lê op jou bed en dink wat jy gedoen het. Word rustig! Bly stil. Dien die Here met oorgawe! Vertrou op Hom. Jy het al baie mense hoor sê: “Wanneer sal dit weer met ons goed gaan?” Help tog, Here! Kyk na ons kant toe. Daar is niks wat my blyer maak as wanneer U my help nie. Ek is blyer daaroor as wat ander bly word oor miljoene rande, oorsese reise of blink motors. As ek in die aand bed toe gaan, kan ek sonder bekommernis aan die slaap raak. En ek raak dadelik aan die slaap, want by U voel ek veilig. U alleen beskerm my. *** Hoor tog wat ek sê, Here! Luister hoe ek my hart teenoor U leegmaak. Ek kreun. Red my as ek om hulp kom smeek. U is my God, die Een wat my lewe beheer. Daarom bid ek tot U. U sal hoor as ek soggens vroeg met U praat, Here. Soggens sal ek my hart oopmaak en wag op u antwoord. Here, U hou niks van slegte dinge nie. Daarom sal iemand wat kwaad doen, nooit by U tuis voel nie. Hulle wat dink hulle is beter as ander, sal ongemaklik by U wees. U hou niks van mense wat lelike dinge aan ander doen nie. U bring ’n einde aan oneerlike mense wat lieg en kwaadpraat. Hulle wat doodmaak en bedrieg, maak U sommer baie kwaad. U sal my toelaat om naby U te kom, want ek wil U aanbid. Omdat U u kinders baie liefhet, mag ek na U toe kom. Uit eerbied mag ek voor U neerkniel. Here, help my om reg te lewe, want mense wat niks van my hou nie, hou my fyn dop. Help my om op die reguit pad te loop wat U gelukkig maak. Mens kan niks glo wat daardie oneerlike mense sê nie. Hulle is net daarop uit om mense te vernietig. Hulle praat mooi woordjies, hulle vlei mense, maar met ’n gladde mond bring hulle ander tot ’n val. God, straf hulle daarvoor! Laat hulle hulle skuld dra. Laat hulle geknoei tot hulle eie val lei. Jaag hulle weg omdat hulle baie slegte dinge gedoen het. Hulle wil niks met U te doen hê nie. Maar laat almal wat by U kom wegkruip, vol vreugde wees! Laat hulle sing van blydskap. Beskerm hulle! Hulle is bly oor U, want hulle is vir U lief. Laat hulle wat U liefhet, juig oor dit wat U vir hulle doen. U gee arms vol geluk vir mense wat U liefhet, Here. U omring hulle met u liefde. *** Here, moet my nie straf as U kwaad is nie; moet my nie slaan as U woedend is nie. Wees goed vir my, Here, want ek word al hoe swakker. U moet my asseblief gesond maak, Here, want my liggaam is besig om in te gee. Ek is lam van moedeloosheid. Wat gaan U hieraan doen, Here? Hoe lank gaan dit nog so aanhou? Draai na my toe om, Here! Red my van hierdie swaarkry! U het tog u kinders baie lief. Mense wat dood is, kan U mos nie meer onthou nie. Onder die grond tussen die dooies is dit doodstil. Niemand prys U meer daar nie. Ek kan nie meer huil of kla nie; my kragte is op. In die nag huil ek my kussing nat. My hele bed is later nat van die trane. Al die pyn en hartseer maak my gedaan. Ek is moedeloos. Daardie spul wat niks van my hou nie, tap al my kragte. Julle wat my so sleg behandel, gee pad! Die Here luister na my gebed wanneer ek huil. Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit. Hy aanvaar my gebed. Daarom help Hy my. Almal wat niks van my hou nie, sal in die skande kom. Hulle sal vinnig en vol skaamte van my af padgee. *** Here, U is my God. Ek skuil by U! Red my van almal wat my wil seermaak. Hou hulle ver van my af weg! Hulle is net soos honger leeus wat rondkyk om iets te kry wat hulle kan opeet. Help my, want daar is niemand anders wat dit kan doen nie. Here, my God, as ek dinge gedoen het wat nie reg is in u oë nie, wys dit tog vir my! As ek mense wat my wou help, of mense wat teen my was, sleg behandel het, kan hulle my maar in die grond in trap. Dan kan hulle my maar slegsê. Mag my vyand my dan in die hande kry, en my bykom en verneder. Staan asseblief op, Here! Gryp tog in! Word ’n slag kwaad vir daardie spul wat so vol woede teen my baklei. Pas my op. U wil mos hê dat mense reg behandel word. Laat al die mense in die wêreld in ’n kring gaan sit. Dan gaan sit U op u troon in die hemel, daar van waar U die wêreld beheer. U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit: kyk tog dat ek die regte dinge gedoen het, Here! Ek is onskuldig. Ek verdien nie om so sleg behandel te word nie. Maak ’n einde aan slegte mense se planne wat weier om na U te luister. Maar help hulle wat U liefhet, o God. U weet mos of mense reg leef en of hulle vertrou kan word. U tree altyd regverdig op. U beskerm my, want U help almal wat reg voor U leef. God is ’n eerlike regter. Hy neem altyd die regte besluite. U word kwaad vir mense wat verkeerde dinge doen. As iemand nie sy sondes laat staan en doen wat U wil hê nie, straf U hom. Dan is U soos ’n jagter wat u swaard skerp maak en pyl en boog span om die slagoffer te skiet. U sit dodelike gif aan u pyl om u prooi te skiet. Almal wat skuldig is, doen dinge waarvan U niks hou nie. Hulle doen aanmekaar kwaad en bedrieg ander. Met hulle gebeur presies wat die spreekwoord sê: Grawe ’n gat vir ander, dan val jy self daarin. Deur hulle eie geknoei kom hulle tot ’n val. Die gewelddadige dinge wat hulle vir ander beplan, gebeur met hulleself. Ek sal die Here prys omdat Hy regverdig teenoor alle mense is! Ek sal liedere sing om die allerhoogste Here se Naam te loof! *** Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys! Alles wat U in die hemelruim gemaak het, vertel hoe groot U regtig is. Uit die blou lug klink simfonieklanke wat aan U lof bring. Deur swak en klein mensies word u groot krag hier op aarde uitgebasuin, deur ’n baba wat geluidjies maak of ’n pap babatjie in ’n ma se arms. U groot krag laat almal wat met U probeer baklei gou-gou stil word. As ek opkyk na alles wat U in die hemelruim gemaak het, al die planete, die maan, melkwegstelsels en miljoene sterre, snak ek na my asem as ek sien hoe piepklein die mens regtig is. Hoekom gee U vir hom om? En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie! Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik. U het hom so belangrik gemaak dat hy amper soos U is; U behandel hom soos ’n koning; U gee ’n baie hoë posisie aan hom. U wil hê dat die mens oral moet wys hoe groot U is. Hy is mos u verteenwoordiger. Hy regeer oor die hele aarde. U laat hom soos ’n groot leier oor u handewerk regeer. Hy moet vir alles sorg wat U gemaak het. [8-9] Veral die diere is van hom afhanklik - die vee, wilde diere, voëls en visse. *** Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys! *** Met alles binne-in my wil ek vir die Here dankie sê! Ek wil praat oor die wonderlike dinge wat U gedoen het. Ek is bly oor U! Ek juig oor wat U gedoen het. Allerhoogste God, ek sal liedere sing om U te eer. Mense wat niks van my hou nie, pla my nie meer nie. U het hulle tot ’n val gebring. Hulle het voor U vergaan. Maar U het my reg behandel. Soos ’n goeie regter het U my saak goed hanteer. U het ’n regverdige uitspraak gegee. U het daardie spul wat U nie ken nie, ernstig gewaarsku. U het ’n einde gemaak aan hulle wat U nie dien nie. U het hulle name van die aarde afgevee. Niemand sal ooit weer oor hulle dink of praat nie. U het selfs die plekke waar hulle gebly het, van die aarde afgevee. Mense sal nooit weer daaraan dink nie. Die Here regeer vir altyd oor almal. Hy regeer as die regverdige Een. Hy neem altyd die regte besluite. Omdat Hy al die feite het, sal Hy die regte vonnis oor al die volke vel. Die Here beskerm elkeen wat swaarkry. In die grootste nood kan hulle by Hom skuil. Almal wat U ken, vertrou op U. U laat mense wat U soek en van U afhanklik is, nooit in die steek nie. Julle wat die Here dien, kom sing lofliedere om Hom te eer. Hy woon in Jerusalem. Praat onder al die volke oor dit wat Hy doen. Hy gee om vir mense wat onskuldig ly. Hy help elkeen wat in die nood is. Wanneer hulle sy hulp vra, sal Hy hulle nie ignoreer nie. Here, wees goed vir my. Maak u hart vir my oop. Help my wanneer hulle wat my haat, my wil doodmaak. Dis net U wat kan sorg dat ek nie doodgaan nie. Help my asseblief, Here, sodat ek oor u wonderlike dade kan praat. Almal moet daarvan weet. By u woonplek sal ek vertel dat U my gered het. En ek sal bly wees. Mense wat U nie ken nie, sal self tweede kom terwyl hulle ander tot ’n val probeer bring. Hulle word die prooi van hulle eie bose planne. Die Here het vir alle mense gewys wie Hy regtig is. Hy straf verkeerde dade. Mense wat Hom nie dien nie, moet weet dat hulle deur hulle eie geknoei tot ’n val sal kom. Almal wat nie die Here dien nie, se uiteinde is die dood. So ook die volke wat vergeet dat Hy God is. Maar die Here vergeet nooit om elkeen wat sy hulp vra, by te staan nie. As jy hulp nodig het, kan jy maar net jou hoop op die Here stel. Hy sal jou nooit teleurstel nie. Gryp nou in, Here! Anders dink party mense dat hulle baie sterk is. Maak almal bymekaar wat U nie dien nie. Wees ’n regverdige regter. Oordeel hulle! Here, laat hulle bang word. Laat die volke besef dat hulle maar net swak mense is! Here, waarom maak U asof U my nie ken nie? Hoekom bly U eenkant staan? Dit voel of U baie ver van my af is. In krisisse is U weg as ’n mens U regtig nodig het! Mense wat arrogant is en nie na U luister nie, dink hulle is beter as dié wat hulpeloos is. Daarom trap hulle op die swakkes. Sorg asseblief dat hulle die slagoffers van hulle eie slegte planne word. Mense wat God nie dien nie, geniet dit om sonde te doen. Hulle sê vir mense wat oneerlik wins maak om daarmee aan te hou. Vir die Here het hulle geen respek nie. Mense wat die Here nie dien nie, loop altyd neus in die lug. Hulle dink te veel van hulleself. Hulle sê: “God straf tog nie sulke dade nie.” Party van hulle gaan nog verder en sê: “Daar is in elk geval geen God nie.” Dit gaan goed met alles wat hulle doen. Hulle is suksesvol. Dit lyk of hulle glad nie bang is vir u straf nie. Hulle buit ander uit. En hulle sien U nie raak nie. Hulle dink dat geen ramp hulle sal tref nie. Niks slegs kan met hulle gebeur nie. Daardie spul slegte mense vloek links en regs. Hulle is oneerlik. Hulle trap op mense so ver as wat hulle gaan. As hulle praat, is dit slegte dinge om mense te na te kom. Hulle lê mense voor. Hulle maak onskuldige mense dood. Hulle gebruik elke kans wat hulle kry om mense uit te buit wat hulpeloos is. Omdat hulle agteraf konkel, is hulle so gevaarlik soos ’n spul honger leeus. Hulle wag vir die regte oomblik om dié wat swak is te vang. Hulle pynig die armes wat hulle gevang het. Hierdie spul verpletter hulpeloses se lewe. Hulle beheer almal wat hulle in hulle mag kry. Hulle sê vir hulleself: “God het vergeet wat ons doen. Hy sien dit nie raak nie. Hy steur Hom nie daaraan nie!” Gryp in, Here! God, wys dat U die sterkste is. Moenie mense wat sleg behandel word, vergeet nie! Die goddeloses het geen respek vir U nie. Hulle dink: “God gaan ons nie laat rekenskap doen van al ons slegte dade nie!” Maar U sien mos wat hulle doen. U sien hoe mense te na gekom word. Almal wat deur hulle te kort gedoen word, kom vertel dit vir U. Daardie arme mense wat so swaarkry, gee hulle hartseer in u hande oor. U help mense wie se regte vertrap word. U help mense wat nie ’n pa het nie. Bring ’n einde aan die magspel van die mense wat aanhou om slegte dinge te doen, Here! Moenie dat een verkeerde daad van hulle ongestraf bly nie. Die Here regeer oor die hemel en die aarde vir altyd. Omdat Hy al die mag het, kan die volke nie in hierdie land aanhou bly nie. Here, U hoor alles wat hulpelose mense vir U vra. U gee vir hulle nuwe krag. U hoor as hulle met U praat. U sorg dat mense wat geen regte het nie en onderdruk word, goed behandel word. Daarom hoef niemand bang te wees vir magsbehepte mense nie. God self sal met al die skuldiges afreken. Ek gaan kruip weg by die Here. Ek verstaan nie hoekom mense vir my sê om soos ’n voël weg te vlieg en op ’n ander plek hulp te gaan soek nie. Mense wat U nie dien nie, probeer ander tot ’n val bring, Here. Hulle staan reg om mense wat reg lewe seer te maak. Hulle val mense wat reg lewe in die donker aan. Hulle doen dit wanneer niemand hulle sien nie. Mense wat reg lewe, is magteloos teen hulle. Die Here is in sy woonplek. Hy regeer uit die hemel oor alles. Hy kyk wat mense doen en toets hulle optrede. Die Here kyk of dié wat reg lewe sy toets slaag. Hy het geen tyd vir daardie spul wat alles met hulle vuiste en wapens wil uitsorteer nie. Mag die Here almal wat Hom nie dien nie, voor Hom wegvee. Mag Hy hulle soos ’n orkaan tref. Die Here is altyd regverdig. En Hy hou daarvan as mense die regte dinge doen. Almal wat opreg lewe, sal voor die Here kan gaan staan. *** Red tog, Here, want daar is nie enige gelowiges oor nie. Hulle wat U gedien het, het tussen neus en oë verdwyn. Daar is niemand op wie ek kan vertrou nie. Mense lieg en bedrieg mekaar. Met mooi woorde is die een besig om die ander om die bos te lei en te bedrieg. Ek wens die Here wil alle vleiery en grootpratery laat verdwyn. Daar is mense wat sê: “Ons kan enigiemand ’n gat in die kop praat. Met die mond kry ons alles reg. Ons is baas oor almal.” Die Here het genoeg daarvan gehad. Hy sê: “Ek gaan almal help wat verdruk word. Ek hoor die hulpkrete van mense in nood. Ek sal elkeen beskerm wat na my verlossing smag.” Wat die Here sê, dit bedoel Hy. Sy beloftes is eg. Hulle is soos goud wat in ’n vuurwarm oond skoongebrand is. ’n Mens kan daarop reken. Here, U sal hulle beskerm. U sal ons teen die slegte mense van ons dag beskerm, selfs al loop hulle oral rond en spog; selfs al is almal rondom ons propvol slegte dinge. *** Hoe lank gaan U my nog alleen los, Here? Gaan U my aanmekaar bly vergeet? As U my nie help nie, voel dit of my swaarkry ’n ewigheid lank aanhou. Hoe lank gaan U niks aan my krisis doen nie? Hoe lank moet ek myself uit hierdie moeilikheid probeer kry? Ek is moeg daarvoor om aanmekaar bekommerd te wees. Hoe lank gaan my vyande my nog teen die planke vasdruk? Gee tog aandag en antwoord my, Here my God; maak my weer gelukkig. Anders is daar geen ander uitweg vir my as die dood nie. Moenie dat hulle wat niks van my hou nie, sê: “Ek het hom op sy plek gesit!” nie. My vyande sal bly wees as ek dood neerslaan. Maar ek het op u getroue liefde staatgemaak. In my binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my! Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar nie. Jy kan dit sien aan wat sulke mense doen: hulle kul en bedrieg net. Hulle stel nie belang om enigiets goeds te doen nie. Die Here soek tussen mense na iemand wat die verstand het om na Hom te soek en te doen wat Hy vra. Maar mense het gekies om die verkeerde pad te loop. Nie een van hulle leef soos God wil hê nie. Hulle het sleg geword. Sal die slegte mense nooit leer nie? Kyk net wat doen hulle: Hulle behandel die kinders van God sleg en buit hulle uit. Hulle praat nie eens met God nie. Maar hulle gaan groot skrik. Want God sien om na sy kinders. Die slegte mense probeer die hele tyd om arm mense skade aan te doen. Maar die Here sal sy mense beskerm. Ek bid dat die Here sy kinders uit sy woonplek sal help. Dit sal hulle bly maak as die Here hulle gee wat hulle nodig het, as Hy hulle in hulle eer herstel. Here, watter mens mag voor U kom staan? Wie mag in u huis instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is? Iemand wat so optree dat U heeltemal tevrede is met wat hy doen, mag daar kom; ja, hy wat reg doen, wat U wil hê. So iemand praat altyd die waarheid. Hy skinder nie en praat nie sleg oor ander nie, en steek ook nie sy vriend in die rug nie. Dit is iemand wat nie dinge sê wat iemand anders seermaak nie. Hy hou ook nie van mense van wie God nie hou nie. Maar God se vriende is ook sy vriende; van hulle hou hy. Hy hou sy woord, al kos dit hom soms duur. Hy leen nie sy geld teen rente uit nie. Hy laat hom ook nie omkoop om verkeerde dinge te doen en onskuldiges te benadeel nie. Wie hierdie dinge doen, sal altyd vas bly staan. Beskerm my, o God, want ek kom kruip by U weg. U pas my op. Ek het vir die Here gesê: U alleen is my Heer. U is die heel belangrikste in my lewe. Ek is deel van ’n skare mense wat U dien en eer. Ek is bly as ek tussen hulle is. Maar daardie mense wat dooie gode dien se hartseer word by die dag net groter. Sulke afgode, hoe mooi hulle ook al mag lyk, sal ek nooit dien nie. Ek sal selfs nie eens hulle name noem nie. Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here. U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee. Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie. Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ’n mooi land. Ek sal die Here prys. Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my hand vat en my op die regte pad lei. Selfs as ek slaap, weet ek Hy is by my. Daar is nie ’n oomblik van die dag dat ek nie aan die Here dink nie. Hy is die belangrikste in my lewe. Hy is altyd by my. By Hom is ek veilig; Hy hou my op die regte pad. Ek is baie bly; my blydskap hou nooit op nie. U sal nie toelaat dat die dood my onkant betrap nie. Die dood kan niemand wat U liefhet uit u hand wegruk nie. Ek sal nie in die graf beland nie. U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U. Here, help my! My saak is regverdig. Ek staan eerlik voor U, sonder vals motiewe. Hoor tog terwyl ek na U roep! Ek is opreg as ek dit vra. Neem asseblief die regte besluite oor my lewe. U weet tog of ek eerlik en opreg is. U wou weet hoe ek optree as ek alleen is; daarom het U gekyk of U op my kan staatmaak. U het my getoets. Maar U kon geen fout vind nie. Oor wat ander doen, bly ek stil. Ek praat nie van mense nie. Ek het net gedoen wat U van my verwag. Ek weet ek doen net wat U wil hê. Ek het net agter U aangeloop. Ek dwaal nie van u pad af nie. Nou roep ek na U, want U sal my mos antwoord, o God! Draai u oor na my toe en luister na wat ek sê. Wys met wat U doen hoe lief U vir my is. Want U red mense wat by U kom wegkruip uit die kloue van ander wat hulle wil seermaak. Pas my op soos die appel van u oog. Laat my by U wegkruip. Daardie mense wil my met geweld vernietig. Hulle hou niks van my nie en storm van alle kante op my af. Hulle wil my dood sien. Hulle voel niks vir niemand. Wanneer hulle praat, hoor jy hoe baie hulle van hulleself dink. Dit straal uit hulle uit. Oral waar ek gaan, loop hulle agter my aan. Van alle kante bekruip hulle my. Hulle wag net vir die regte oomblik om my tot ’n val te bring. Mense wat weier om U te dien is soos ’n spul leeus wat regstaan om hulle prooi uitmekaar te skeur. Staan op, Here! Vat daardie skelm spul vas! Bring hulle tot ’n val. Red my van almal wat niks met U te doen wil hê nie. Red my self van hulle wat nie doen wat U sê nie. Straf hulle soos U reeds besluit het om te doen. Laat hulle in die fleur van hulle lewe doodgaan. Moenie dat hulle kinders en kleinkinders wegstap sonder dat hulle ook gestraf word nie. Laat hulle almal vir hulle sondes betaal. Ek sal na U toe kom, want ek doen wat U sê! Ek is reg. Elke keer wanneer ek sien hoe U by my is, is ek sommer baie bly. *** Ek het U lief, o Here. U maak my sterk. By die Here is ek veilig, want Hy beskerm my. Hy help my as ek in die moeilikheid is, want Hy is sterk. Ek kruip by Hom weg. Hy is my God, en Hy is reg rondom my om my veilig te hou. As my vyande my moeilikheid gee, bid ek tot die Here. Hy help my dan. Hy verlos my van my vyande. Dit het vir my gevoel of die dood my vasgedruk het, ja, asof alle moeilikheid soos golwe oor my slaan. Ek was in die poorte van die dood. Ek het in die vangnet van die dood getrap. Toe het ek na die Here geroep. Ek het Hom gevra om my asseblief te help... en my God het my gehoor! Daar waar Hy bly, luister Hy na my as ek roep. Die Here het kwaad geword, en toe het die aarde begin bewe. Dit het gelyk of iemand die berge vat en rondskud. Dit was of die vreeslikste vuur losbreek wat alles verbrand. Rook het uit sy neus gekom. Dit was of die hemel oopbars toe die Here kom. Hy het op donker stormwolke geloop. Ja, asof Hy sweef op die wind, het Hy op ’n magtige hemelwese aangevlieg gekom. ’n Mens kon die Here nie sien nie, want dit was donker om Hom. Donker wolke en waters het Hom toegevou. Dit was of ’n helder lig voor Hom uitgestraal het. Voor die glans uit het wolke met hael en weerligstrale getrek. Met ’n harde stem het die Here uit die hemel gepraat, hael en weerligstrale het gevlieg. Ek het die stem van die Allerhoogste gehoor. Toe die weerligstrale soos pyle tussen die mense begin slaan, het dit die vyand in alle rigtings laat spaander. Hy het hulle op ’n hoop gejaag. Ja, Here, as U op mense skree, is dit nie speletjies nie. Dit is soos ’n orkaan wat alles uitmekaarruk. Jy sien die see se bodem en die aarde se fondamente. Soos ’n sterk hand wat my uit diep, donker water pluk, gryp U my en lig U my uit. My vyande was te sterk vir my, maar die Here het my gehelp. Hy het my gered van die mense wat te magtig vir my was. Toe hulle my aanval en ek diep in die moeilikheid was, was die Here daar om my te help. Hy het my gehelp dat ek nie ondergaan nie. Daarom het Hy my na ’n veilige plek toe gevat. Hy het my gered omdat Hy my liefhet. Ja, Hy het my gered. Hy beloon my omdat ek reg gelewe het. Ek was onskuldig. Omdat ek graag doen wat Hy van my vra, het Hy my gehelp. Omdat ek nie verkeerde dinge gedoen het nie, het die Here mooi vir my gesorg. Ek het die reguit pad van die Here geloop. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Ja, ek het voluit vir Hom geleef soos Hy van my verwag het. Ek het Hom opreg gedien. Ek was versigtig om niks verkeerds te doen nie. Die Here het dit geweet. Ek was onskuldig in sy oë. Daarom was Hy goed vir my. Hy het my regverdig behandel. As iemand getrou is, is die Here getrou. As iemand liefdevol optree, kry hy liefde van die Here af terug. As iemand reg en goed optree, is die Here ook goed vir hom. As iemand slegte dinge doen, sal hy ervaar hoe dit voel as God slegte dinge aan hom doen. As mense sleg behandel word, sal U hulle red. As mense egter te veel van hulleself dink, sal U hulle op hulle plek sit. O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is, verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie. Ek spring oor ’ n hoë muur. God se pad is volmaak. Jy kan alles glo wat Hy sê. Hy beskerm almal wat by Hom kom wegkruip. Want wie anders as die Here is die enigste ware God? En by wie anders kan ’n mens gaan wegkruip as by God? God gee my al die krag wat ek nodig het. Hy laat my voorspoedig gaan. Niemand kan my vang nie. Ek sal nie neerslaan nie. U wys my hoe om teen my vyande te veg en te wen. U maak my sterk. U self beskerm my en red my waar ek U nodig kry. U het moeite gedoen en my gehelp. U was baie goed vir my. Ek was ’n oorwinnaar. Ek het selfversekerd gedoen wat ek gedoen het. Ek het nie getwyfel nie. My vyande kon nie wegkom nie. Ek het nie opgehou tot ek die laaste een oorwin het nie. Ek het hulle platgeloop. Hulle sou nie sommer weer opstaan nie. Hulle het onder my voete beland. Maar ek kon dit net doen omdat U my die krag gegee het. U het my vyande voor my laat kniel. Dis eintlik U wat my vyande vir my oorwin. U het gesorg dat hulle weghardloop. So kon ek die mense wat nie van my hou nie se mag heeltemal breek. Hulle smeek iemand om hulle te help, maar daar is niemand nie. Nou skielik vra hulle die Here om te help, maar Hy steur Hom nie aan hulle nie. Ek het hulle mag totaal gebreek, soos klip wat ’n mens fynmaal soos stof en in die wind rondstrooi, of soos modder wat jy in die pad gooi vir almal om op te trap. Ek het hulle vertrap. U het my gehelp om uit die kloue te kom van hierdie mense wat net wil baklei. Nou is ek hulle koning en moet hulle na my luister. Mense wat ek eers nie geken het nie, moet my nou dien. As hulle net van my hoor, luister hulle al! Vreemde mense kom bewend nader. Hulle probeer nie eens teen my veg nie. Hulle gooi sommer dadelik die handdoek in. Hulle gee dadelik oor. Die Here leef! Ek wil vir die Here baie dankie sê omdat Hy my so beskerm. Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my gered het. Hy help my om my vyande op hulle plek te sit. Hy onderwerp volke aan my mag. Hy red my van my vyande. Hulle kan niks aan my doen nie. Ek troon bo elkeen van hulle uit. Mense wat gewelddadig is, kan niks doen nie omdat U my van hulle red. Daarom wil ek U loof en dankie sê voor al die nasies, o Here. Ek wil liedere sing om u Naam groot te maak en U te eer. Die Here help sy koning. Hy maak hom ’n ware oorwinnaar. Hy is baie goed vir die koning wat Hy aangestel het. Hy is goed vir Dawid en al sy kinders, vir altyd en altyd. *** As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is oral in die lug opgeteken. In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister. Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor. Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie. Hulle boodskap word versprei sonder klanke. Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie. Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien, is vol van sy eer. As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het. Hy het die son soos ’n lig daarin opgehang om helder te skyn. Wanneer die son in die môre helder opkom, lyk hy soos ’n gelukkige bruidegom wat na die eerste nag by sy bruid met ’n glimlag by die huis uitstap. Sy gesig straal. Die son is so sterk en dapper soos ’n oorlogsheld wat sy taak vir die dag vol moed aanpak. Hy begin met sy werk aan die een kant van die wêreld en loop heeltemal om tot by die ander punt. So straal die son sy hitte op elke millimeter van die wêreld uit. So werk die Here se wet ook. Daar is geen foute in nie. Soos die son oor alles skyn, so speel die wet ’n rol in ons hele lewe. Dit bring nuwe krag in jou lewe. Jy kan altyd op die wet staatmaak. Dit is betroubaar, want dit leer mense wat nog nie ervaring het nie hoe om gelukkig te lewe. Die Here wil hê mense moet die regte dinge doen. Dan sal hulle vol blydskap wees. Die Here se opdragte is baie duidelik. Dit leer jou watter pad die regte een is. En dit maak jou bly as jy op die regte pad loop. As jy die Here dien, bly verkeerde dinge ver van jou af weg. Wat die Here sê, laat jou gesig skitter. Die Here verwag dat sy kinders na Hom moet luister. God se wet geld vir altyd. Dit wys ons hoe om te leef soos God wil hê. Wat Hy sê, is reg. Sy woorde leer jou om reg en regverdig te lewe. Wat God wil hê, is vir jou lewe kosbaarder as goud; dit is baie meer werd as ’n hele hoop suiwer goud. Om God se wil te doen bring groter vreugde as die soetste heuning wat daar is. Elkeen wat U dien, leer uit u wet. Iemand wat u wet gehoorsaam, se lewe is vol en ryk. Hy word oor en oor daarvoor beloon. Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd doen nie. Here, vergewe al my foute waarvan ek nie weet nie, wat ek gedoen het sonder dat ek besef het hoe verkeerd dit is. En keer my as ek van plan is om opsetlik verkeerde dinge te doen. Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie. As U my help, sal ek sonder foute wees. Dan sal ek nie aanhou om oor en oor die verkeerde dinge te doen nie. Ek hoop U sal bly wees oor alles wat ek sê en dink. Here, ek wil U baie graag bly maak, want U pas my baie goed op. U verlos my! *** Mag die Here jou gebed verhoor die dag as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob jou veilig hou. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan uit die plek waar Hy bly. Ja, mag die Here onthou hoe getrou jy Hom gedien en vir Hom geoffer het. Mag dit Hom bly maak. Mag Hy vir jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees. Ons sal vrolik en bly wees as jy wen. Ons sal vir almal sê en wys wie die Here regtig is. Ja, mag die Here vir jou gee wat jy graag wil hê. Een ding weet ek nou. Die Here sal die persoon wat Hy koning maak, ook ’n oorwinnaar maak. Hy sal sy gebede beantwoord vanuit sy woonplek. Omdat die Here so sterk is, sal die Here hom altyd laat wen. Party mense dink hulle goeie oorlogswapens en vegvoertuie gaan hulle laat wen. Ons weet van beter. Dit is die Here ons God wat ons laat wen. Ons vertrou op Hom. Daardie ander mense sak inmekaar. Hulle kan nie bly staan nie. Maar ons bly onwrikbaar staan. Laat die koning asseblief wen, o Here. Luister asseblief as ons bid. *** O Here, die koning is baie bly omdat U vir hom gewys het hoe sterk U is, ja, omdat U hom gehelp het om te wen. Daaroor juig hy. U het na sy gebed geluister en vir hom gegee wat hy graag wou hê. U kom na hom toe. Dan gee U vir hom wonderlike geskenke. U sit tot vir hom die pragtigste kroon van goud op sy kop. Hy wou lank saam met U leef - U het dit vir hom gegee - vir baie, baie lank. Mense dink baie van hom omdat U hom gehelp het. Daarom bewys mense groot respek en eer aan hom. U laat dit altyd goed gaan met hom. Hy loop oor van blydskap omdat U altyd naby hom is. Die koning vertrou die Here heeltemal. Omdat die Allerhoogste getrou is, loop niks vir hom verkeerd nie. U sal u vyande in die hande kry en hulle oorweldig. Soos ’n vuur wat alles voor hom wegbrand, so sal die Here sy vyande uitwis. Die Here sal hulle van die aarde afvee omdat Hy vir hulle kwaad is. Mense sal nie eens meer van hulle of hulle kinders weet nie. Hulle nageslag sal nie bestaan nie. Hulle sal allerhande planne teen U maak, maar nie een plan sal uitwerk nie. Want U sal hulle straf. U sal maak dat hulle ver weghardloop. Hulle sal vlug. Wys tog vir ons hoe sterk U is, Here. Dan sal ons opgewonde ons liedere sing om vir almal te vertel hoe sterk U regtig is. *** My God, my God, waarom los U my heeltemal alleen? U help my nie. Ek skree totdat ek blou word, maar U is weg. My God, ek roep U heeltyd; ek hou nie op met bid nie, heeldag en heelnag lank, maar van U is daar geen teken nie. U is doodstil. U is die Een wat baie belangrik en groot is. U kinders het groot respek vir U. U is waar hulle U loof. Ons oupas en oumas het op U vertrou. Hulle het U vertrou en U het hulle nie in die steek gelaat nie. U het hulle gehelp. Hulle het tot U gebid. Toe bevry U hulle. Op U het hulle vertrou en U het hulle nie teleurgestel nie. Maar ek voel nie meer soos ’n mens nie. Ek is soos ’n wurm tussen ’n klomp stinkende dooies. Mense trek die neus op en sien op my neer. Hulle spot my. Elkeen wat my sien, lag my uit; hulle trek gesigte, steek vir my tong uit en skud die kop. Dan sê hulle: “Siestog, die Here moet die arme drommel maar help. Hy sal hom miskien uit sy moeilikheid help, want Hy hou mos van hom.” Here, U gee al lankal vir my om, van my geboorte af. Ek was doodtevrede en gelukkig toe my ma my aan haar bors laat drink het. Reeds van die begin van my lewe af behoort ek aan U. U is my God van my geboorte af. U sorg vir my. Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe. U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit. Daar is niemand om my te help nie. Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere. Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm. Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom. Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur. Ek het geen krag meer oor nie. Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand. Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar. Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks. Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is. Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak. Van alle kante het hulle gekom om op my te trap. Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie. Hulle het my hande en voete stukkend gesteek. Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai. As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede. Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel. U moet my tog nie alleen los nie, Here! U alleen gee my krag. Kom help my baie gou! Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie. Ek het net een lewe. Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet. Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel. U het my uit my nood gered! In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat. Voor die gemeente sal ek U loof en prys. Ek sal U voor almal prys. Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het! Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie. Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep. Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing. Almal moet dit hoor. Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom. Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien. Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees. Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee. Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys. Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop. Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe. Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is. Hulle sal hulle lewe vir Hom gee. Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien. Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig. Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde. Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee. Hulle sal kom om Hom te dien en te eer. Alle mense sal voor Hom kniel. Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo. Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat. Dit is net die Here wat mense red. Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie. Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien. Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe. Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is. Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel. Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk. U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed. U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan. Alles op hierdie aarde is die Here s’n. Ja, die aarde self en alles wat daarop leef en beweeg, is Syne. Hy het die aarde op die see en riviere gebou. Wie het die reg om in die huis van die Here in te gaan? Wie mag sommer by Hom gaan staan? Iemand wat nie verkeerde dinge doen nie en nog minder daaraan dink, is by die Here welkom; ja, iemand wat nie ander mense kul nie en wie se ja sy ja en wie se nee sy nee is. Vir so iemand sal die Here baie goed wees. God, sy redder, sal sorg dat sy verhouding met Hom reg is. Dit is die mense wat naby die God van Jakob wil wees. Hulle soek na die Here en verlang na sy teenwoordigheid. Poorte, staan gereed en swaai oop, want die magtige Koning wil ingaan. Wees bly daaroor! Wie is hierdie magtige Koning? Dit is die Here. Hy is baie sterk. Niemand kan Hom wen nie. Hy is ’n Held. Poorte, staan gereed en swaai oop, want die magtige Koning wil ingaan. Wees bly daaroor! Wie is Hy presies, hierdie magtige Koning? Dit is die Here. Niemand is sterker as Hy nie. Niemand kan eens naastenby by Hom kers vashou nie. Hy is die Koning. Here, ek is heeltemal van U afhanklik. Ek kyk op na U. My God, op U vertrou ek. Moet my tog nie in die steek laat nie. Moenie dat hulle wat U verwerp, my spot nie. Hulle wat op U hoop, sal nooit teleurgesteld wees nie. Maar hulle wat U nie dien nie, sal aan die kortste ent trek. Wees vir my soos ’n onderwyser. Gee my insig sodat ek weet wat U wil hê ek moet doen. Wys my watter pad is die regte pad. Leer my hoe U wil hê ek moet lewe. Laat my op die regte pad loop. U is die God wat my red. Op U vestig ek al my hoop. Here, u liefde en u goedheid kom van altyd af. Dink daaraan dat U vir ons goed was. Moet my tog nie straf vir die verkeerde dinge wat ek gedoen het toe ek jonk was nie. Behandel my met liefde en deernis, Here, want U is vol goedheid. Die Here is goed. Hy tree regverdig op. Hy help selfs sondaars om op die regte pad te kom. Mense wat naby Hom leef, leer Hy om reg te leef. Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word: Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom getrou dien. Al die mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het en wat doen wat Hy vra, moet dit doen. U het so ’n groot Naam, Here. Ter wille van u Naam, vergewe tog al my slegte dade. Hulle is so baie. God sal almal wat Hom dien se hand vat en hulle help om die regte keuses te maak. Dan sal hulle die goeie dinge van die lewe in oorvloed geniet. Selfs hulle kinders sal daarin deel hê. Hulle sal in die land bly woon. Die Here maak sy planne net aan hulle bekend wat ontsag vir Hom het. Hy maak sy hart wyd teenoor hulle oop. Hy wys hulle wat sy ooreenkoms met mense is. Ek is elke oomblik van die Here afhanklik. Ek kyk heeltyd na Hom op. Hy keer dat swaarkry en probleme my onderkry. Hy red my uit die moeilikheid. Ek is alleen. Ek vra u hulp, want ek het groot probleme. Ek draai na U toe. Ek kry baie swaar. Help my om nie meer vir my probleme bang te wees nie. Red my uit swaarkry. My probleme word al groter. Vergewe al my verkeerde dade. Kyk hoe swaar kry ek. Kyk hoe sleg gaan dit met my. Beskerm my teen almal wat my haat. Kyk hoe baie vyande het ek. En kyk hoe erg haat hulle my. Moet my nie in die steek laat nie. Beskerm my en red my. By U kom kruip ek weg. Sien dat ek onskuldig is, en dat ek U voluit wil dien. Help my om voluit te lewe, want ek vestig al my hoop op U. God, red tog u kinders uit al die probleme wat hulle so bang maak. Here, sorg tog dat die regte dinge met my gebeur, want ek doen net wat U sê. Ek vertrou op U, Here. Ek twyfel nie ’n oomblik aan U nie. U kan my lewe maar toets, Here. Kyk wat binne-in my aangaan en wat ek alles dink. U sal sien dat ek u voorbeeld navolg. Ek onthou altyd dat U my liefhet. Ek luister na U en doen goeie dinge vir ander. Ek meng nie met mense wat ’n slegte invloed op my kan hê nie. Ek kom nie by mense wat voorgee wat hulle nie is nie. Daarom bly ek weg van mense wat net slegte dinge doen en U nie dien nie. Ek haat alles wat hulle doen! Hulle leef sonder U. Here, ek is onskuldig. Ek was my hande in onskuld. My lewe is skoon. Ek wil U vol blydskap dien. Ek loop na die plek waar mense U dien. Saam met u ander kinders wil ek U loof. Ek wil praat oor al die wonderlike dinge wat U in my lewe gedoen het. Ek gaan graag kerk toe; daar beleef ek saam met ander gelowiges u grootheid op ’n ongelooflike manier. Ek is lief vir u teenwoordigheid. Moet my nie soos ’n sondaar behandel nie. Moet my tog nie saam met mense wat ander doodmaak, laat doodgaan nie. Hulle doen vieslike dinge. Hulle is daaraan gewoond om mense om te koop. Maar ek leef nie so nie. Ek is onskuldig. Daarom smeek ek: red my, wees goed vir my. Ek weet dat ek by U veilig is. U maak my pad gelyk. Oral waar u kinders bymekaarkom, sal ek U loof. Die Here help my deur my donkerste krisis. Sy hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Hy red my. Omdat Hy my help, is daar niks waarvoor ek bang is nie. Die Here beskerm my. Waarvoor sal ek dan bang wees? As slegte mense my kwaad wil aandoen, ja, as mense wat niks van my hou nie, my wil seermaak, sal hulle sleg daarvan afkom. Hulle sal self tot ’n val kom. Al staan ek alleen teen ’n hele leër soldate, sal ek geen bang haar op my kop hê nie. Ook al trek ’n hele weermag teen my op en val my aan, sal ek steeds op die Here vertrou. Daar is een groot wens in my hart en dit wil ek met my hele lewe najaag: dat ek my hele lewe lank by die Here mag wees. Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef. Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is. Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid. Die Here beskerm my die dag as slegte dinge op my afkom; Hy bewaar my teen gevaar; Hy help my uit die moeilikheid. Hy laat my by Hom wegkruip. Nou kan ek weer my kop optel. Die Here maak my ’n wenner. Daarom wil ek Hom aanbid en vir Hom dankie sê deur liedere te sing saam met verskillende musiekinstrumente. Ek sal liedere sing om die Here te eer. Ek sal vir Hom offers bring. Mense wat niks van my hou nie, sal kyk hoe ek my kop optel en die Here prys. Here, ek bid ernstig tot U. Ek roep na U. Wees goed vir my. Help my. Hoor my gebed en antwoord my. Ek sê elke dag vir myself: Jy moet die Here dien. Soek na sy teenwoordigheid. Daarom aanbid ek U, Here. Moet tog nie maak of U my nie hoor nie. Moenie my wegjaag omdat U vir my kwaad is nie. U het my in die verlede gehelp. Stoot my nie weg van U af nie. Los my nie alleen nie. U is die God wat my red. Selfs al wil my pa en ma niks met my te doen hê nie, sal die Here self vir my sorg. Here, vat my hand. Lei my op ’n pad waar daar nie slaggate is nie. Wys my hoe om reg te lewe. Moenie dat hulle wat niks van my hou oor my seëvier nie. Pas my op. Lei my. Party vertel leuens oor my, terwyl ander my met geweld onderstebo wil loop. Moet my tog nie in hulle hand oorgee nie. Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie … Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom! Hou moed! Wees sterk! Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here! Ek bid ernstig tot U, Here. U beskerm my. Moenie stilbly en my laat voel of ek teen die dak vasbid nie. As U my nie help nie, sal ek so goed soos dood wees. Help my tog as ek by U pleit. Ek het u hulp dringend nodig. Ek lig my hande op na U in u woonplek. Moet my nie laat doodgaan saam met mense wat nie in U glo nie. Hulle doen verkeerde dinge. Hulle is skynheilig. Hulle praat mooi woordjies, maar agteraf dink hulle slegte goed uit. Straf hulle vir die slegte dinge wat hulle aanvang. Laat hulle boet. Betaal hulle met gelyke munt terug vir wat hulle doen. Want hulle sien nie raak wat die Here alles op aarde doen nie. Daarom sal Hy slegte mense se lewe verpletter. Hulle steur hulle nie aan wat Hy doen nie. Kom prys die Here, want Hy het my gehelp toe ek na Hom geroep het. Die Here gee my krag. Hy beskerm my. Ek het op Hom vertrou en Hy het my gehelp. Daarom is ek baie bly. Ek sal ’n lied sing om Hom te prys. Die Here gee sy kinders krag. Hy beskerm en help leiers wat Hom vra om by hulle te wees. Help u kinders, Here. Laat hulle wat aan U behoort, genoeg hê om van te leef. Sorg vir hulle soos ’n herder vir sy skape omgee. Tel hulle op en dra hulle elke dag. Eer God, eer Hom, elkeen wat bo in die hemel is. Kyk net hoe belangrik is Hy; kyk na sy krag en maak Hom groot. Vertel vir almal hoe belangrik Hy is. Val dan self in aanbidding neer in sy oorweldigende teenwoordigheid. ’n Mens ervaar die teenwoordigheid van die grote God bo die geruis van die magtige see. Sy stem is soos die donder wat daar slaan. Hy heers oor alle magte. As Hy praat, gebeur dit net so... Wie kan dan teëpraat? Dis die Koning wat daar praat! As die Here praat, is dit soos weerlig wat bome van bo tot onder oopkloof; ja, as Hy praat, laat die dreuning die grootste berge soos jong bokkies rondhuppel. As Hy iets sê, is dit soos die weerlig wat slaan. Sy stem laat die verste woestyne bewe. As Hy praat, skud die groot bome. Sy stem stroop die bosse kaal. In sy oorweldigende teenwoordigheid kan ’n mens net uitroep: “Alle eer behoort aan God alleen!” Die Here regeer oor die geruis van die magtige see, want Hy is koning oor alles. Dit is hierdie Here wat sy volk sterk maak. Dit is hierdie Here wat sy volk omvou met alles wat nodig is. *** Here, ek sal u Naam prys, want U het my gered. U het my vyande gekeer om met my te spot. Here, my God, ek het gebid dat U my moet help. Toe het U my gesond gemaak. Here, U het my uit die dood teruggeruk na die lewe toe. Ek het nie doodgegaan nie. U het my weer lewendig gemaak. Sing lofliedere om die Here se Naam groot te maak. Julle almal wat Hom dien, prys sy Naam! Dink met respek na oor alles wat Hy doen. Hy is heeltemal anders as mense. As Hy kwaad word, is dit net vir ’n paar sekondes. Maar Hy is lewenslank goed vir ons. Kyk maar: ons het deur die nag gehuil. Maar vanmôre lag ons van vreugde. Dis net die Here wat so iets laat gebeur. Toe dit nog met my goed gegaan het, het ek maklik gepraat. Ek het gesê: “Niks sal ooit met my verkeerd loop nie.” U was vir my goed en U het my beskerm, Here. Maar toe het U van my af weggekyk. Eers was daar net ’n doodse stilte van u kant af. Ek het gebewe, so bang was ek. Ek het ernstig tot U gebid, Here. Ek het gevra dat U tog weer vir my sal goed wees. Ek het vir U gesê: “Wat help dit U as ek doodgaan? Kan iemand wat dood is, U prys? ’n Dooie kan tog nie vertel hoe goed U is nie. Help my, Here. Maak u hart vir my groot oop. Wees weer goed vir my.” Ek was baie hartseer, maar U het my lewe met blydskap volgemaak. Nou huil ek nie meer nie. Ek spring in die lug van vreugde. U het my ’n groot eer aangedoen. Ek vier fees. Daarom sal ek lofliedere vir U sing. Ek sal nie stilbly nie. Here, my God, ek sal nooit ophou om U te prys nie. *** Here, by U kruip ek weg! Moet my tog nooit in die steek laat nie. Vat my moeilikheid weg van my. U is goed vir almal wat op U vertrou. Hoor as ek roep! Dra my veilig deur my krisis! Bewaar my as ek vra dat U my moet help. Hou my styf vas in u hand. Ek kruip by U weg. By U skuil ek, en U beskerm my. Omdat u Naam op die spel is, sal U my op die regte pad hou. U sal my red uit die kloue van my vyande. U pas my veilig op as ek na U toe kom. Here, my God, ek stel my lewe in u hand. U, Here, is die God wat getrou is om my te verlos. Daar is baie mense wat dooie gode aanbid. Daardie gode beteken niks nie. Met sulke mense wil ek niks te doen hê nie. Maar aan die Here sal ek elke dag getrou bly. Ek is opgewonde oor u liefde, want U het my nie alleen gelos toe ek swaargekry het nie. In my nood het U my gehelp. Want U het raakgesien toe ek in die moeilikheid was. U het my gered. U het gesorg dat ek nie ondergaan nie. U het my nie aan die mense wat my haat, uitgelewer nie. Wees goed vir my, Here, want ek is diep in die moeilikheid. Ek is doodmoeg van al die huil. Ek is totaal uitgeput. Ja, ek word al hoe maerder omdat ek my lê en bekommer. Al die swaarkry maak my oud voor my tyd. My moeilikheid laat my kragte afneem sodat ek so maer word. Daar is mense wat my tot ’n val wil bring. Hulle sorg dat almal my uitlag. Mense met wie ek bevriend was, wil niks met my te doen hê nie. Elkeen wat naby my kom, spot met my. Hulle vlug weg sodat hulle my nie hoef te sien nie. Mense maak of ek nie meer bestaan nie. Ek is soos ’n dooie wat besig is om te verrot. Ja, ek het gehoor hoe mense stories oor my loop en vertel. Agteraf maak hulle planne om my dood te maak. Hulle span saam teen my. Hulle wil my doodmaak. Maar ek vertrou op U, Here. Ek sê vir U dat U my God is. U beheer my lewe van begin tot end. Red my van hulle wat niks vir my omgee nie. Help my, Here. Kyk na my kant toe. Wys vir my hoe groot u liefde vir my is. Moet my nie in die steek laat nie, Here, want ek bid dag en nag tot U. Laat hulle wat weier om U te dien, sleg daarvan afkom. Mag hulle van die aarde af verdwyn. Dan sal hulle stem stil word. Gee dat hulle wat loop en skinder, nooit weer praat nie. Hulle sien neer op elkeen wat vir U lief is. Hulle dink niks van u kinders nie. Hulle is so vol van hulleself. Here, U is baie goed vir elkeen wat U dien. U maak u hart oop vir mense wat vir U eerbied het. U gee vir hulle meer as genoeg om van te leef. Almal sien dit raak. U beskerm hulle teen almal wat slegte planne teen hulle uitdink. U pas hulle op. Geen skinderstorie kan hulle seermaak nie. Julle moet die Here saam met my kom prys, want Hy het my met sy groot liefde toegevou. Hy beskerm my. Op ’n wonderlike manier het Hy my opgepas toe ek in die moeilikheid was. Terwyl ek baie bang was, het ek gedink: U sien my nie meer raak nie. Ek gly uit u arms. Maar U het my gehelp toe ek U gevra het om my nie alleen te los nie. Julle almal wat die Here se lieflingskinders is, wees elke dag lief vir Hom! Die Here beskerm elkeen wat aan Hom getrou bly. Maar Hy straf almal wat teen Hom in opstand kom. Hou moed! Wees sterk! Julle wat op die Here vertrou, moet nooit moedeloos word nie. Jy is baie gelukkig as die Here jou al jou verkeerde dade vergewe. Jy is gelukkig as Hy nie meer aan jou slegte dade dink nie. Jy is baie gelukkig as die Here jou nie laat betaal vir jou skuld nie. Jy is ook gelukkig as jy nie skelm is of ander mense probeer te kort doen met geld nie. Toe ek stilgebly het oor my verkeerde dade en dit nie voor die Here bely het nie, het dit baie sleg met my gegaan. Ek het maer geword soos ek die hele dag hard gebid het. Dag en nag het U my aan my sonde herinner. My krag het opgedroog soos waterpoele in die gloeiende hitte van die somerson. Toe het ek my verkeerde dade voor U bely. Ek het nie stilgebly oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Ek het besluit om my slegte dade vir die Here te vertel. U, Here, het dit alles vergewe. Daarom moet almal wat hulle vertroue in U stel, in moeilike tye na U roep. As groot probleme ’n gelowige tref, sal dit niks aan hom doen nie. U beskerm my. U pas my op in elke krisis. U laat my uitroep van vreugde wanneer U my red. Hy het gesê: Ek is soos ’n onderwyser vir jou. Ek vat jou aan die hand om jou op die regte pad te lei. Ek sal jou elke keer die regte raad gee. Ek sal jou oppas. Moenie so dom soos ’n perd of ’n donkie wees nie. Hulle het maar min verstand. Hulle moet met ’n toom en ’n teuel gelei word, anders beteken hulle niks nie. Mense wat die Here nie dien nie, ken baie hartseer. Maar elkeen wat op die Here vertrou, kan op sy groot liefde staatmaak. Die Here sal hom met sy goedheid toevou. Julle almal wat die Here liefhet, wees bly en opgewonde! Juig oor die Here! Juig, julle almal wat opreg is! Julle wat reg voor die Here leef, kom prys Hom! Julle wat Hom liefhet, moet lofliedere vir Hom kom sing. Kom prys die Here met julle musiekinstrumente! Sing lofliedere. Vereer Hom met julle instrumente! Kom sing ’n lied met splinternuwe woorde! Juig oor Hom. Eer Hom! Sing en maak musiek uit julle hart uit! Die Here verdien lof, want Hy doen altyd wat Hy sê. Jy kan Hom vertrou, want Hy is betroubaar. Hy hou van mense wat reg lewe. Oral kan mense die Here se groot liefde raaksien. Deur net ’n woord te sê het die Here die blou hemelkoepel gemaak. Al die sterre, planete, mane en sonne het deur sy krag ontstaan. Toe het Hy al die watermassas van die see bymekaargemaak en op een plek bymekaargesit. Hy gaar al die waters op. Daarom moet alles en almal vir Hom respek hê. Elkeen in die wêreld moet eerbied vir God hê. As Hy praat, gebeur groot dinge. Hy gee net ’n bevel, dan verander sy woorde in dade. Die Here krap mense wat Hom nie dien nie se planne heeltemal deurmekaar. Alles wat hulle besluit, laat Hy misluk. Maar dit wat die Here vir sy kinders beplan, sal nooit vernietig word nie. Dit wat Hy vir hulle beplan, geld vir altyd. Mense wat die Here as God aanbid, sal baie gelukkig wees. Hulle is sy kinders. Vir Hom is hulle elkeen baie spesiaal. Daar in die hemel is die Here baie besorg oor al die mense wat Hy gemaak het. Hy sorg vir almal. Vanuit sy blyplek waar Hy as koning heers, gee Hy vir elkeen om. Hy gee aan mense insig en kennis. Hy weet presies wat hulle doen. Dis nie wapens wat die leier van ’n land laat wen nie. Spierkrag help nie veel nie. Dis ook nie militêre krag wat jou bevry nie! Net die Here gee die oorwinning. Hy laat dié mense wen wat Hom eer. Hy sorg vir almal wat op sy liefde vertrou. Elkeen wat van Hom afhanklik is, het Hy baie lief. Hy beskerm jou teen die grootste gevaar, ja, selfs teen die dood. En Hy dra jou deur die grootste probleme. Ons is in alles van die Here afhanklik. Hy help en beskerm ons. Omdat ons op Hom vertrou, maak Hy ons lewe vol met blydskap. Hy is totaal anders as mense. Ons vra dat U ons altyd sal liefhê, Here. Ons kyk elke dag op na U. *** Ek wil die Here heeltyd prys; ek sal Hom dag en nag met lofliedere loof. Ek sal liedere oor die Here sing om Hom te eer. Almal wat hulp nodig het, sal dit raaksien en saam met my bly wees. Kom, julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot. Kom laat ons Hom vereer. In gebed het ek die Here gevra om my te help en Hy het dit gedoen. Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig. Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesigte straal van blydskap. As hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie. Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos. Toe het ek gebid en die Here het my gehelp. Hy het my uit al my krisisse gehelp. Die Here stuur sy engele om mense te beskerm wat Hom dien. Hy verlos hulle wat Hom aanbid. Julle moet self kom ervaar hoe goed die Here is. Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas. Julle almal wat aan die Here behoort, kom dien Hom. Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van mense wat Hom dien. Jy sal niks nodig hê nie. Selfs sterk roofdiere soos leeus met hulle groot krag vang partykeer niks nie. Dan ly hulle honger. Maar as jy van die Here afhanklik is, sal jy niks nodig hê nie. Die Here sal vir jou sorg. Kom, kinders, laat ek julle iets leer! Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien. Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees? Jy? Pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie. Vermy slegte dinge. Doen net goeie dinge aan ander. Lewe in vrede met mense. Die Here sorg vir almal wat doen wat Hy sê. Hy help hulle wat Hom om hulp vra. Maar die Here ignoreer mense wat kwaad doen. Hy gaan hulle laat verdwyn. Niemand sal ooit weer aan hulle dink nie. Die Here help dié wat Hom liefhet. As hulle Hom om hulp vra, red Hy hulle uit al hulle probleme. Hy hoor as hulle na Hom roep. Die Here is naby mense wat hartseer is; Hy gee mense wat moedeloos is, weer nuwe moed. Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie. Uit elke krisis sal Hy hulle red. Hy beskerm sy kinders tot in die fynste besonderhede. Daar sal nie ’n been in jou liggaam gebreek word sonder dat Hy daarvan weet nie. Maar mense wat weier om die Here te dien sal deur hulle slegte dade aan hulle einde kom; hulle wat die Here se kinders sleg behandel, sal met eie munt daarvoor terugbetaal word. Die Here red almal wat Hom dien se lewe. As jy op die Here vertrou om jou op te pas, sal Hy jou nie veroordeel nie. Here, baklei vir my teen hulle wat met my baklei. Veg teen hulle wat teen my veg. Kom help my teen mense wat my aanval. Keer daardie mense wat agter my aanloop om my tot ’n val te bring. Gee my weer nuwe moed! Sê hard en duidelik vir my: “Ek sal jou red.” Keer daardie spul wat my wil doodmaak. Loop bo-oor hulle. Gee dat al die rampe wat vir my beplan is, hulle tref. Laat hulle skaam kry oor wat hulle aanvang. Laat die mense wat wil hê ek moet val, terugsteier. Laat hulle rooi word van skaamte. U is so sterk, u engel kan hulle van die aarde afvee. Hulle sal soos kaf in die wind verdwyn wanneer U die dag ingryp. Daar moet vir hulle geen toekoms wees nie. Agtervolg hulle deur u engele. Slegte mense wil my sonder rede tot ’n val bring. Ek het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wil my vernietig. Laat ’n ramp hulle skielik tref sonder dat hulle mooi weet wat aan die gang is. Laat die rampe wat hulle vir ander mense beplan, oor hulle kom. Laat hulle self in die gat val wat hulle vir my gegrawe het. Ek is baie bly oor wat die Here doen. Ek sal opgewonde jubel omdat Hy my lewe red. Alles in my sal uitroep: “Daar is niemand soos die Here nie! Dis net U wat mense wat swak is in hulle nood red. U bevry hulle van mense wat baie sterker is as hulle. U help swak mense uit die kloue van ’n klomp diewe.” Die mense wat my wil seermaak, staan reg om leuens oor my te vertel. Hulle praat kwaad teen my. Hulle beskuldig my van ’n klomp goed waarvan ek niks weet nie. As ek vir hulle goed is, betaal hulle my terug met slegte dinge. Hulle wil my om elke hoek en draai bykom. Toe hulle siek was, was ek hartseer oor hulle lyding. Ek kon selfs nie eet nie. Ek het gevas. Die hele tyd het ek sonder ophou vir hulle gebid. Ek het hulle behandel soos my beste vriend, soos my broer. Ek het oor hulle gehuil soos ’n mens oor jou ma treur wanneer sy doodgaan. Ek was krom van hartseer. Noudat probleme my skielik onderkry, is daardie selfde klomp baie bly. Hulle span saam teen my. Almal van hulle het lekker oor my geskinder. Hulle het my verskriklik beledig. Hulle kry nie end nie. Toe ek struikel, het hulle daaroor gelag. Hulle gee niks vir my om nie. Hulle dreig my. Here, hoe lank gaan U nog toelaat dat daardie mense my laat swaarkry? Red my kosbare lewe uit die kloue van daardie spul. Hulle is soos ’n klomp honger leeus wat hulle prooi wil opeet. Dan sal ek U prys as al u kinders weer saam is! Tussen die menigte gelowiges sal ek U loof! Moenie dat ander bly wees as ek swaarkry nie. Hulle haat my sonder dat ek iets aan hulle gedoen het. Keer tog dat hulle bly is omdat dit sleg gaan met my. Hulle wil nie in vrede met my leef nie. Hulle vertel lelike dinge oor my. Hulle beskuldig my van goed wat ek nooit gesê of gedoen het nie. Here, U weet tog wat regtig gebeur het! Moenie die saak net so laat nie! Moenie my alleen los nie, Here! Kom verdedig my. Kom op vir my, Here. U is tog my God. Help my. U tree altyd reg op, Here, my God. Tree ook nou regverdig teenoor my op. Moenie dat hulle dit geniet as ek swaarkry nie. Daardie klomp moenie onder mekaar sê: “Goed so, presies net wat ons wou hê, het met hom gebeur” nie. Hulle moenie spog en sê: “Ons het hom tot ’n val gebring” nie. Laat almal wat bly is oor my probleme, tweede kom. Laat hulle self in die ellende beland. Laat hulle skaam en verleë staan. Maak almal wat my wil help se lewe vol vreugde. Laat hulle juig. Hulle moet aanmekaar sê: “Die Here is baie groot! Hy sorg dat elkeen wat Hom dien in vrede leef.” Ek sal ook vir almal van u regverdigheid vertel, Here. Ek sal U heeltyd prys omdat U goed is vir ons. *** Slegte mense se lewe word deur slegte dade regeer. Hulle steur hulle nie aan God nie. Hulle dink baie van hulleself, en praat heeltyd oor hoe goed hulle is. Hulle floreer om kwaad te doen en mense te haat. Lelike woorde gly oor hulle lippe; hulle het g’n idee hoe om goed te doen aan ander nie. Hulle weet nie wat dit is om slim genoeg te wees om ander mense goed te behandel nie. Snags lê hulle wakker om slegte dinge uit te dink. Hulle loop op ’n pad wat nie goed is nie. Hulle hou van die slegte. Sonde is hulle kos: heeldag, elke dag. Here, U is baie lief vir ons, niemand op aarde kan dit ooit meet nie. Here, U is so goed vir ons, niemand het genoeg woorde om dit te beskryf nie. Here, U tree altyd regverdig op. Here, wanneer U praat, is dit altyd regverdig teenoor ons as mense. U hou alles wat leef styf in u hand vas. Elke mens, elke dier leef uit u goedheid. God, niemand kan sonder u goedheid leef nie. U pas almal op wat by U kom wegkruip. U liefde vloei soos ’n rivier oor ons hele lewe. U gee vir ons meer as wat ons nodig het. U is baie goed vir ons. U is ons lewe. U is die lig wat ons lewenspad verlig. God, U moet asseblief nooit ophou om lief te wees vir al u kinders nie, dié mense wat U as God erken en reg voor U lewe. Keer dat hoogmoedige mense my rondstamp. Keer dat sondaars my uit u hand ruk. Slegte mense kom altyd sleg daarvan af by U; op die ou end bly daar niks van hulle oor nie. Hulle bly lê. Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie. Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie. Hulle verdwyn sommer op ’n dag. Vandag is hulle daar; môre is hulle weg. Glo liewer in die Here. Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here. Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou op die regte pad hou. Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef. Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê. Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan. Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie. Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid. Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort. Net ’n klein rukkie nog, dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie. Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees. Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf. Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan. Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle. Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd. Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet. Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan. Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie. Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle. Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit. Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word. Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is. Hy laat dit goed gaan met hulle. As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie. Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op. Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat mense wat reg voor God leef ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op straathoeke en bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig om vir ander mense. Hulle klou nie aan hulle geld vas nie. Hulle leen geld sonder om rente te hef. Ook met hulle kinders sal dit goed gaan. Moenie die verkeerde doen nie. Doen net goeie dinge, dan sal jy vir altyd naby aan Hom leef. Die Here hou baie van almal wat reg optree. Sulke mense los Hy nooit alleen nie. Hy sal hulle altyd beskerm, maar slegte mense verdwyn soos mis voor die son. Hulle word uitgeroei. Die Here se kinders sal die land kry en vir altyd daarin lewe. Die monde van mense wat reg lewe, praat wyse dinge. Hulle sê die regte dinge. God se wil oorheers hulle lewe; daarom verdwaal hulle nooit in die sonde nie. Hulle slaan nie neer in die gemors nie. Slegte mense probeer goeie mense doodmaak. Hulle soek ’n kans om mense wat reg lewe, by te kom. Maar die Here pas sy kinders op. Hy laat hulle nie in die hand kom van mense wat sonder Hom leef nie. Hy laat nie toe dat hulle skuldig bevind word nie. Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê. Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig. Hy sal sorg dat reg aan jou geskied wanneer jy voor die hof gedaag is. Jy sal sien hoe die sondaars ondergaan. Ek het al baie keer gesien hoe gewetenlose mense wat sonder God leef met ’n groot lawaai op die toneel verskyn, maar toe ek weer kyk, was hulle weg. Net mooi niks het van hulle oorgebly nie. Maar kyk ’n bietjie na mense wat na die Here luister, mense van vrede. Hulle het ’n toekoms. Mense wat hulle nie aan die Here steur nie, leef in ’n doodloopstraat. Hulle word uitgeroei. Hulle het geen toekoms nie. Maar mense wat reg lewe, word deur die Here gehelp. Hulle skuil by Hom. Hy red hulle as hulle die dag swaarkry. Die Here gee baie vir hulle om. Daarom red Hy hulle wanneer slegte mense hulle wil seermaak. By die Here is daar redding. Altyd! *** Here, moet tog nie aanhou om my te straf as U kwaad is nie. Moet my nie in u woede seermaak nie. U het my onderstebo geloop. Ek ly verskriklik. Ek is baie siek omdat U vir my kwaad was. Die verkeerde dinge wat ek gedoen het, laat my gesondheid ingee. My sondes word te veel vir my. Ek kan hierdie las nie meer dra nie. Dis te swaar vir my. My siekte maak dat ek ander mense van my af wegstoot. Dit het gebeur omdat ek dom dinge aangevang het. Ek kan nie eens meer regop staan nie. My liggaam is skeef en krom. Heeldag loop ek en huil. Ek treur. My lyf bewe van die koors. Daar is nie meer ’n plek op my lyf wat gesond is nie. My krag is op! Ek is platgeslaan. My liggaam ruk soos my hart van ontsteltenis klop. Ek skree van die pyn. Here, U weet wat ek graag wil hê! Wat ek van U afsmeek, is geen geheim nie. Daar’s nie ’n sprankie hoop meer in my oor nie. Alles lyk donker. My siekte maak dat my vriende en familie nie meer na my toe wil kom nie. Hulle bly ver weg van my. Daar is mense wat wil hê ek moet doodgaan. Ander wil hê ’n ramp moet my tref. Hulle maak oneerlike planne teen my. Hulle versprei leuens oor my. Hulle wens dat ek sal val en bly lê. Maar ek hou my doof. Ek hou my mond en sê niks. Ja, ek maak of ek daardie spul glad nie hoor nie. Ek praat nie ’n woord met hulle nie. Ek wag dat U my moet help. Ek vertrou op U. U sal my antwoord, Here, my God. Gee tog dat hulle nie bly is oor my lyding nie. As ek tot ’n val kom, is hulle baie bly daaroor. Hulle dink hulle is beter as ek. Nou kan ek dit nie meer uithou nie, Here! Ek gaan val. Daar is nie ’n oomblik dat my liggaam nie vol pyn is nie. Al my verkeerde dade kom erken ek voor U. Dit pla my dat ek soveel lelike dinge gedoen het. Dit gaan goed met die mense wat my haat. Daar is so baie van hulle. Hulle haat my sonder rede. As ek goed aan hulle doen, steek hulle my in die rug. Hulle spoeg op my omdat ek graag goeie dinge vir ander mense doen. U moet my nie nou alleen los nie, Here! My God, bly by my! Moenie ver weg bly staan nie! Kom help my tog gou, Here. U is die Een wat my red. *** Ek het gedink dat ek baie goed moet kyk hoe ek leef, want ek wil nie verkeerde dinge sê en so sonde doen nie. Voordat ek praat, sal ek eers mooi dink wat ek sê. As ek naby ongelowiges is, moet ek nog versigtiger wees as ek praat. Ek het my mond gehou en nie ’n woord gesê nie. Maar toe ek so stilbly sonder om te praat oor die goeie, het my hartseer net al hoe groter geword. Later kon ek dit nie meer uithou nie. Binne-in my het dit soos ’n vuur gebrand. Toe het ek tog gepraat. Ek het vir die Here gevra: Hoe lank sal ek nog leef? Hoe kort gaan my lewe wees? Ek wil weet hoeveel tyd ek nog oorhet! Wanneer kom my einde? Here, U gee my maar ’n kort lewe. In u oë is ’n mens se lewe amper niks. Ons gaan so gou dood. Die mens se lewe is net soos ’n flitslig wat jy aan- en afskakel. Dit skyn ’n kort rukkie, dan gaan dit dood. Die mens hou hom met baie dinge besig. Hy sloof hom af. Hy maak ’n klomp besittings bymekaar. Maar hy weet nie wie dit alles gaan erf nie. Ag Here, wat bly daar nog vir my in hierdie lewe oor? Ek vestig al my hoop op U! Moet my nie straf vir al die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Moenie dat dié wat dom dinge aanvang met my spot nie. Ek sê nie ’n woord nie. Ek sal doodstil bly, want U het hierdie krisis oor my gebring. Vat dit tog weer weg. Dis vir my verskriklik as U die rug vir my keer. Ek kan nie meer nie. As U mense straf oor hulle sonde, bly daar niks van hulle oor nie. ’n Mens leef maar net vir ’n kort tydjie. Help my as ek bid, Here! Hoor tog as ek om hulp smeek! Moet my nie ignoreer as ek huil nie. Ek is by U soos ’n uitlander. Ek voel soos iemand wat nie deel van ’n familie is nie. U moet vir my sorg, anders is dit klaarpraat met my. Hou asseblief op om my te straf. Ek wil graag ’n bietjie vreugde hê voordat ek doodgaan. Dan is ek nie meer hier nie. *** Ek het lank gewag dat die Here my sou help, en dit het toe gebeur. Hy het na my toe afgebuig. Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Hy het my gehoor. Toe ek ernstig hulp gevra het, het die Here my gehelp. Hy het gekeer dat ek doodgaan. Hy het my uit die dood opgetel. Dit was of ek in modder weggesak het. Nou is my lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in my lewe gegee. Ek sal ’n nuwe lied tot die Here se eer sing, want Hy is ons God. Baie mense sal raaksien wat Hy gedoen het. Dit sal maak dat hulle op Hom vertrou. Hulle sal Hom eer. Dit gaan goed met elkeen wat op die Here vertrou. So iemand gaan vra nie hulp by mense wat dink hulle is beter as ander of by mense wat van leuens lewe nie. Here, my God, U het wonderlike dinge gedoen. U gee vir ons om. U is heeltemal anders as mense. Daar is niemand soos U nie. Ek het nie genoeg woorde om alles op te noem wat U gedoen het nie. Dit is te veel vir woorde. U stel nie daarin belang dat mense geskenke of offers na U toe bring nie. U vra net gehoorsaamheid aan U. Daarom het ek besluit: ek gaan doen wat U wil hê. Dit is alles tog in u Woord neergeskryf. My God, ek wil baie graag doen wat U gelukkig maak. Daarom is u wil deel van my lewe. Wanneer u kinders bymekaar is, vertel ek vir hulle hoe regverdig U optree. Here, ek kan nie daaroor stilbly nie. U weet dit. Ek praat dag en nag oor die goeie dinge wat U doen. Ek steek dit nie weg nie. Ek vertel dat U getrou is en mense vrymaak. Ek bly nie stil oor wat U doen as die gemeente bymekaarkom nie. Here, ek weet U sal nie ophou om my met u liefde toe te vou nie. Pas my altyd op. Wees lief vir my. Duisende probleme het my omring. My sondes het my ingehaal. Ek is nou nog toegegooi onder probleme. Ek kan dit nie tel nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Dit maak my heeltemal moedeloos. Here, red my, asseblief. Help my gou, Here! Daar is mense wat my wil doodmaak. Laat hulle skaam kry oor wat hulle doen. Verneder hulle. Laat almal weghardloop wat bly is oor my swaarkry. Hulle moet self voel hoe dit is om in die skande te kom. Hulle lag my mos uit en maak ’n gek van my. Laat hulle stom staan. Almal wat naby U leef, moet opgewonde en bly wees. Laat mense wat weet dat U red, elke dag sê: “Daar is niemand groter as God nie!” Ek is in die moeilikheid. Niemand help my nie. Ek het hulp nodig. Die Here sal my nie vergeet nie. U sal my help. U sal my red. My God, moet asseblief nie langer wag nie! *** Jy is baie gelukkig as jy iemand help wat swak is. As jy die dag self in die nood is, sal die Here jou ook help. Die Here sal jou beskerm en keer dat die dood jou oorval. Hy sal jou gelukkig maak, waar jy ook al is. Almal sal vertel hoe goed dit met jou gaan. Die Here sal nie toelaat dat mense wat niks vir jou omgee, jou onder hulle voete vertrap nie. As jy siek is, sal die Here jou gesond maak. Hy sal langs jou siekbed bly staan. Ek het vir die Here gesê: “Wees tog goed vir my! Maak my gesond, al het ek verkeerde dinge teen U gedoen.” My vyande sê lelike dinge oor my. Hulle sê: “Ons wens hy gaan dood sodat almal van hom kan vergeet.” As iemand by my kom kuier, wil hy net weet hoe sleg dit met my gaan. Hy maak my verder sleg by ander mense. Almal wat my haat, praat agter my rug oor my. Hulle hoop dat die slegste dinge my sal oorkom. Hulle sê: ’n Bose gees bly in hom. Dit is klaar met hom. Hy sal nie daar opstaan nie! Selfs my beste vriend het die rug vir my gedraai. Ek het hom vertrou. Hy het altyd saam met my gekuier. Here, help my. Maak my gesond sodat ek kan opstaan. Dan kan ek aan hulle gaan doen wat hulle aan my gedoen het. My vyande kon my nie onderkry nie. Daaraan weet ek dat U my liefhet. Ek was onskuldig. U het dit vir almal gewys. En U hou my vas. U is altyd by my. Prys die Here, die God van Israel. Prys Hom vir altyd. Hy sal altyd sy kinders se God wees. Dit is die volle waarheid! *** Soos ’n bokkie in die woestyn wat dors is vir water, so het ek ’n vurige verlange om by U te wees, God! Net soos ’n bokkie sonder water doodgaan, gaan ek dood as ek nie by U is nie. Ek wil heeltyd net by U wees. God, U gee lewe. Ek leef net vir daardie oomblikke wanneer ek u Naam kan grootmaak tussen al u kinders. Al wat ek op die oomblik doen, is huil. My hele lewe is een groot stuk hartseer. Alles binne-in my skeur wanneer slegte mense vir my sê: “Nou waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?” Met verlange dink ek terug aan die ou dae. Toe het ek die leiding geneem in die eredienste en feesgeleenthede. In die dienste het ek voorgegaan in gebed. Ek het leiding gegee wanneer ons saamsing. By lofprysings was ek die voorsanger. Ons het almal saam feesgevier om U te prys. Ek het voor hulle uitgestap na u woonplek toe. Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red. Ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. My God, ek is heeltemal moedeloos. Hier sit ek by ’n waterstroom ver van die plek waar ek U aanbid het. Hier ver weg van almal dink ek aan U. My gedagtes dwaal ver terug. In die agtergrond bruis die waterstrome. Net soos die watermassas oor die stompe en klippe slaan, so het U ’n groot klomp swaarkry en hartseer oor my laat spoel. Maar die Here sal my weer bevry. Bedags sal Hy by my wees met sy liefde, terwyl ek in die nag lofliedere vir Hom sal sing. In my gebed sal ek by Hom wees. Ek sal tot Hom bid, want Hy is die God wat my oppas. Ek wil vir God sê: “U bewaar my mos! Waarom het U dan vergeet om my te help? Waarom moet ek so swaarkry? Waarom moet ek hartseer wees? Mense wat niks van my hou nie, maak dit vir my moeilik. Hulle gespot word vir my te erg.” Dit voel of hulle ’n mes in my hart steek as hulle heeltyd vir my sê: “Waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?” Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Hoekom so hartseer? Vertrou net op God. Ek sal Hom weer loof, al kry ek swaar. Dit is Hy wat my sal help. Hy is my God. Sorg asseblief dat ek reg behandel word, o God! Maak soos ’n regter in die hof: hy verdedig onskuldige mense teen ’n klomp boewe. Beskerm my teen oneerlike skelms wat my mishandel. By U voel ek veilig, God. U beskerm my. Maar hoekom los U my nou alleen? U verwerp my. Hoekom moet ek hartseer rondloop omdat my vyande my laat swaarkry? Maak my lewe vol met u lig. Wys my wat reg en goed is. Help my. U gee tog om vir u kinders. Wys vir my wat om te doen. Sit my voet op die regte pad sodat ek U weer voluit kan dien. En bring my terug na u woonplek toe. Ek wil U aanbid, God. U maak my hart altyd bly. God, ek wil u Naam prys. U is my God! Ek loof U met musiekinstrumente. Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red. Hy is my God. *** Ons oupas en oumas het vir ons gesê U, o God, het baie groot dinge in hulle tyd gedoen. Dit was lank, lank gelede, toe U vir die Israeliete ’n land gegee het. Met u groot krag het U vreemde volke voor u kinders uit verjaag. Vir u kinders het U ’n blyplek gegee. Dit was nie u kinders se wapens wat so goed was dat hulle die oorlog gewen het nie. Nee, dit was nie hulle wat so sterk was nie. Dit was U. U het hulle met u groot krag gehelp. U wou hulle help omdat U baie lief is vir hulle. God, U regeer ook oor ons. Ons erken dat U die sterkste van almal is. Help ons net soos U ons oupas en oumas gehelp het. Met u hulp sal ons die mense wat met ons baklei onderstebo loop. In u Naam wen ons die mense wat teen ons opstaan. Ons maak nie op ons eie krag staat nie. Ons wapens sal ons nie laat wen nie. Dis net U wat ons in die verlede laat wen het. U het ons vyande skaam-skaam huis toe laat gaan. Ons het U toe heeldag lank geprys en bewonder. Ons het U geloof. Maar, Here, U het ons nou van U af weggestamp! U het ons verneder! U het ons nie gehelp toe ons teen ander mense geveg het nie. Ons moes vlug. Ons vyande het al ons goed gevat. Hulle gee niks vir ons om nie. Ons is soos diere wat geslag word. U het ons uitgelewer aan vreemde mense in die omgewing en ons tussen hulle verstrooi. U het u kinders vir wie U lief is, byna verniet weggegee. In ruil daarvoor het U amper niks gekry nie. U maak geen wins op ons nie. U het ons verneder voor almal wat rondom ons bly. Die mense wat ons sien, lag ons uit. Hulle spot met ons. Mense van ander nasies spot met ons. Hulle kyk op ons neer. Ons word heeltyd verneder. Ons kan niemand meer in die oë kyk nie. Ons is te skaam. Ons vyande spot met ons. Hulle trap ons in die modder. Hulle geniet dit om lelik met ons te wees. Kyk net wat het alles met ons gebeur, Here! Ons het U en u ooreenkoms met ons nie vergeet nie. Ons het nie ons rug vir U gedraai nie. Ons het nie van u pad weggegaan nie. Tog het U ons vernietig. Ons huise is afgebreek. Ons leef in die land waar die dood vir ons loer. God weet mos as ons Hom skielik nie meer dien nie. Hy sal vinnig agterkom as ons by vreemde afgode hulp gaan vra. Hy weet wat mense in die geheim dink en doen. Sou Hy nie agterkom wat ons doen nie? U het ons ’n lang tyd laat swaarkry, Here. Dit is oor U dat ons behandel is soos diere wat geslag word. Is U nog daar, Here? Slaap U? Hoekom doen U dan niks nie? Gryp in! Moenie ons wegstamp nie! U maak asof U nie daar is nie. U speel wegkruipertjie met ons. U steur U nie aan ons nie! U draai die rug vir ons terwyl ons swaarkry en mense met ons spot. Ons word in die grond in getrap. Ons kan nie self regop kom nie. Help ons, Here! Red ons omdat U ons liefhet. *** Die pragtigste woorde vloei oor my lippe. Ek lees my gedigte vir die koning. My tong is soos die pen van ’n goeie skrywer. U, o koning, staan uit tussen alle mense. Almal sien u mooi voorkoms raak. As u praat, kan ’n mens altyd luister. God is altyd baie goed vir u. Maak u reg vir die oorlog, dapper vegter. U is so sterk, magtig en belangrik. Ry uit as oorwinnaar. U veg mos vir wat waar is. Om armes te help en reg op te tree lê u na aan die hart. Ja, u doen magtige dinge. U tref die kol keer op keer; u vyande het nie ’n kans nie. U goddelike koninkryk sal vir altyd daar wees. U regeer regverdig. U hou van wat reg is en haat wat verkeerd is. Daarom het God, u God, u bo almal gekies en as koning aangestel, en almal was baie bly daaroor. U klere ruik wonderlik lekker. In u paleis van ivoor luister u na mooi musiek. Dit maak u bly. Prinsesse omring u en langs u staan die koningin met pragtige goue juwele. Luister, o dogter, as die koning van jou hou; los jou familie en kom na hom toe. Die koning vra na jou omdat jy vir hom mooi is. Eer hom. Hy is mos ook jou koning. Jy behoort aan hom. Dogter van Tirus, die rykstes sal vir jou goed wil wees. Hulle sal vir jou geskenke gee. Die prinses lyk asemrowend. Sy wag daarbinne in die mooiste klere. Sy word na die koning toe gevat. Haar vriendinne loop saam met haar. Hulle is uitbundig van vreugde. So stap hulle die paleis binne. Mag u seuns hê om oor die hele land te heers soos hulle voorvaders gedoen het. Mag hulle ook as regeerders aangestel word. Ek wil vir mense vertel hoe groot en belangrik u is. Mense moet altyd mooi dinge oor u sê. *** As ons in ons nood wil vlug, kan ons na God toe vlug. Hy is baie sterk. As ons beskerming soek, sal die Here ons beskerm. As ons in die moeilikheid is, sal Hy ons help. Daarom skrik ons vir niks nie. Al sou die aarde bewe en dit lyk of die berge in die see wil wegsak, ons is nie bang nie. Al druis en skuim die see, en al skud dit die berge heen en weer. Die vloei van ’n waterstroom bring vreugde in die Godstad. God self bly daar. Daarom sal niks slegs dit kan tref nie. Voor hulp nog nodig is, het God reeds gehelp. Mense is verskrik en sterk regerings bewe. Maar God hoef maar net te praat, dan verkrummel alles letterlik voor Hom. Die Here, vir wie niks onmoontlik is nie, is by ons. Hy is ons groot Bevelvoerder. Die God van Jakob sal ons self beskerm. Kom kyk wat die Here alles op die aarde doen. Dit is verstommend. Hy maak oral ’n einde aan die bakleiery tussen mense. Die wapens waarmee mense oorlog maak, vernietig Hy met vuur. Wees stil en weet Ek is God. Ek regeer oor nasies, oor die hele aarde. Elke mens sal erken dat Ek die belangrikste is. Niks en niemand is en kan so belangrik wees soos Ek nie. Die Here, vir wie niks onmoontlik is nie, is by ons. Hy is ons groot Bevelvoerder. Die God op wie Jakob ook vertrou het, sal ons beskerm. *** Wees saam met ons bly. God maak ons so bly! Ons loop oor van al die wonderlike dinge wat ons oor Hom wil sê. Ons wil dit uitsing, ons wil daaroor juig, ons wil aan God al die lof gee wat ons kan. Hoe ongelooflik groot is ons Here, die Allerhoogste! Niks en niemand kan met Hom vergelyk word nie. Hy regeer oor alles. Wat Hy wil hê, gebeur net so. Ons vyande het geen kans teen Hom nie; met gemak vee Hy hulle eenkant toe. Maar vir ons, sy kinders, kies Hy die pragtigste land, want Hy het ons lief. Soos ’n koning wat na sy troon toe stap terwyl die mense hom hardop toejuig, so juig ons oor die Here as Hy na ons toe kom. Sing, maak God groot met elke lied. Ja, sing en moenie ophou nie, want God is jou koning. Hy heers oor alles. Daarom moet ons liedere sing wat vertel hoe groot Hy is. Hy heers oor elke mens, belangrik of onbelangrik, want Hy is die Here wat regeer. Regeerders, heersers, ja, al die belangrikste mense sal by God kom staan omdat hulle graag sy mense wil wees. Hy is Abraham se God. Hoe groot is God nie; Hy heers oor al die heersers. Niks en niemand is so groot soos Hy nie. *** Groot is die Here! Hoe geweldig baie beteken Hy nie vir ons nie! Ons wil Hom maar net loof, hier in sy stad op die berg. Hoog teen die berg lê die stad. Dit maak almal op aarde sommer bly. Dit is die stad in die noorde. Daar bly die groot Heerser oor alles. Die stad het sterk mure, maar God is eintlik die Een wat dit regtig beskerm. ’n Klomp konings het kragte teen die stad saamgespan, hulle het bymekaargekom om die stad aan te val. Toe hulle die stad sien, het hulle so groot geskrik dat hulle so vinnig weggehardloop het as wat hulle kon. Hulle was so bang soos ’n vrou net voor sy haar baba in die wêreld bring; ja, net soos mense op skepe wat magteloos in ’n vernietigende storm vernietig word. Ons het hierdie dinge eers gehoor, maar nou het ons dit met ons eie oë gesien. Dit het alles hier in die stad van ons Here, die groot Bevelvoerder, gebeur. Dit is die stad van ons God, wat Hy onbeweeglik vas laat staan, vir altyd. As ons hier in u huis sit, dink ons gedurig aan hoe goed en lojaal U teenoor ons is, o God. Oral in die wêreld weet mense van U, o God. Hulle praat met groot lof van U, want U help op ’n regverdige wyse mense uit hulle nood. Al die mense by u huis moet oorloop van blydskap. Die mense in die omgewing moet opgewonde wees, want U het gedoen wat U besluit het. Loop rondom Jerusalem en bewonder al die pragtige torings en die mooi muur. Kyk net hoe sterk lyk die stad. Dan sal julle vir julle kinders daarvan kan vertel. Hierdie God is ons s’n. Vir altyd en altyd sal Hy ons God bly. Hy sal elke keer vir ons wys waarheen ons moet gaan. *** Luister, luister! Maak oop julle ore, alle mense wat op aarde woon. Julle almal, ryk en arm, moet nou mooi luister. Niemand is uitgesluit nie. Ek wil vir julle wyse dinge sê wat vertel dat ek groot insig het. Ek het goed nagedink oor wat ek nou vir julle sê; op die maat van musiek praat ek met julle oor God se geheime. Hoekom sal ek bang wees wanneer skelm mense my lewe bedreig? Hoekom sal ek omgekrap wees as geldgierige mense my probeer te kort doen? Hulle spog oor hulle baie skatte. Hulle vertrou op hulle besittings om hulle te red. God kan nie daarmee omgekoop word nie. Jy kan nie jou lewe van die dood red deur te probeer betaal nie. ’n Mens se lewe is baie meer werd as geld. Niemand kan genoeg geld hê om vir sy lewe te betaal nie. Geld kan jou nie uit die kloue van die dood red nie. Jy kan nie die ewige lewe koop nie. Almal weet dit tog: slim mense én dwase mense gaan uiteindelik dood. Alles wat hulle bymekaargemaak het, bly hier agter. Hulle nuwe adres: die dood! Daar trek hulle nooit weer weg nie. Niemand leef vir altyd nie, al het so ’n mens ook baie eiendom besit. Nie eens die grootste rykdom verseker ’n lang lewe nie. Op die ou end gaan ons almal dood, net soos die diere in die veld. Die dood wag vir mense wat op hulleself vertrou, vir mense wat baie van hulleself dink. Soos ’n klomp skape storm hulle agter die dood aan. Die dood pas hulle op. In die doderyk verdwyn hulle binne ’n sekonde. Al wat van hulle oorbly, is ’n verlate grafsteen êrens in ’n begraafplaas. Niks bly oor van alles waarop hulle vertrou het nie. Ek glo dat God my nooit in die kloue van die dood sal laat beland nie. Hy sal my daar uithaal en reguit na Hom toe vat. Hoekom dan bekommerd wees oor ryk mense, as hulle al meer kry? Al hulle geld bly hier agter as hulle die dag doodgaan. Hulle vat niks saam nie. Wat help dit dat hulle die hele wêreld aan hulle voete het met hulle baie geld? Wat help dit dat jy bly is oor al jou voorspoed, of ons mense jou prys oor jy so goed is? Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit. Net soos almal voor hulle gaan hulle dood. En in die graf sien hulle nooit weer die lig nie. Ryk mense wat nie die Here dien nie, is dom. Hulle sal soos diere doodgaan. God, die Here, wat alles kan doen wat Hy wil, praat. Hy alleen is God. Hy roep die hele wêreld nader. Almal moet na Hom luister. Sion is ’n ongelooflike mooi stad. Daar verskyn God soos ’n verblindende lig. Ons God kom. Hy bly nie stil nie. Dit is of ’n storm rondom Hom losbreek en ’n vuur alles voor Hom wegbrand. Hy roep almal in die hemel en op aarde nader om te hoor wat Hy van sy volk gaan sê. Hy gaan sy volk oordeel. “Maak die mense bymekaar wat My so getrou dien. Ons het mos ’n ooreenkoms met mekaar.” Almal in die hemel stem saam: “God doen altyd wat reg is, ook as Hy mense oordeel.” “My mense, luister. Ek wil vir julle sê wat Ek teen julle het. Ek getuig teen julle. Ek is God, julle God. Ek is nie ongelukkig omdat julle nie vir My geskenke bring nie. Ek onthou altyd julle offers. Dis nie daaroor dat Ek rekenskap van julle eis nie. Ek het nie julle bokke of beeste nodig wat julle so offer nie. Alles behoort in elk geval aan My. Daar is duisende wilde diere wat Myne is. Ja, al die beeste wat jy op die berge sien wei, behoort aan My. Die voëls wat vlieg en die diertjies wat in die veld kruip, is almal Myne. Sê nou Ek is honger, sou Ek vir jou kos vra? Nee, want alles in die wêreld behoort aan My. Ek het nie jou bokke of beeste nodig nie. Ek benodig nie hulle vleis en hulle bloed nie. Wat Ek wel wil hê, is dat jy met jou lewe vir My dankie moet sê. Gee en doen vir My, die Allerhoogste, wat jy belowe het. As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help. En jy moet vir My dankie sê.” Vir die slegte mens sê God: “Hoekom praat jy nog oor die wil van die Here asof dit vir jou saak maak? Hoekom maak jy asof ons met mekaar ’n ooreenkoms het? Jy wil nie luister wat Ek jou leer nie. Jy doen ook nie wat Ek vra nie. Jy is tuis tussen diewe en mense wat niks van die huwelik dink nie. Jy maak nes hulle. As jy jou mond oopmaak, lieg en bedrieg en skinder jy; jy gee nie eens om of dit jou eie broer is wat jy so behandel nie. Jy smeer hom swart. “Terwyl jy so woes aangegaan het, moet Ek stilbly? Dan dink jy dalk Ek maak soos jy. Nee, Ek gaan jou laat deurloop. Jy gaan mooi verstaan waaroor dit gaan. Ek kla jou aan. Luister asseblief mooi as Ek julle waarsku, julle wat leef asof God nie daar is nie. As Ek julle begin straf, sal niemand julle meer kan help nie. “Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle vir My dankie sê en loof deur julle optrede. Die mense wat so leef, sal Ek altyd help.” *** *** God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief. Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde. Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg. Delg die skuld van my sondes uit. Maak my skoon omdat my sondes my vuilgesmeer het. Ek weet dat ek groot foute in u oë gemaak het. Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. My gewete pla my aanmekaar. Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen. Maar U sal reg optree as U oor my lewe moet besluit. U sal nie die verkeerde ding doen nie. Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe. Ek sien dit in my eie lewe. Vandat my ma my in die wêreld gebring het, dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees. U wil hê ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here. Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hê moet ek lewe? Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here. Kyk op ’n splinternuwe manier na my. Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie. My lewe moet so skoon wees soos die witste wol. Help my om weer opgewonde en bly te wees. Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf. Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie. Maak my opreg, God! Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie. Jaag my nooit voor U weg nie. Laat u Goddelike krag ook nie van my af weggaan nie. U krag sorg dat ek doen wat U vra. Laat ek weer bly wees. U alleen kan die lewe weer vir my nuut maak. Help my om U te dien met alles wat in my is. Ek wil baie graag mense help wat nie doen wat U sê nie. Ek wil vir hulle sê om hulle sondes te laat staan en na U toe terug te kom. God, help my om nie ander mense se lewe te vernietig nie! U is die God wat my lewe heelmaak. Help my om vol blydskap vir ander te vertel van die goeie dinge wat U doen. Here, sit al die regte woorde waarmee ek U kan prys in my mond. Here, U wil nie hê dat ons U moet probeer vergoed vir alles wat U vir ons doen nie. Anders sou ek dit doen. U vra nie offers van ons nie. Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig en kom sê hy is jammer oor sy verkeerde dade. God, U sal nooit iemand wat sleg voel oor sy sonde van U af wegstoot nie. Wees goed vir u kinders, Here. Bou u mense se lewe weer op. Dan sal hulle weer dinge doen wat U gelukkig maak. Dan sal hulle U weer voluit dien met alles wat hulle het. Hulle sal vir U hulle heel beste gee. *** *** Jy dink jy is baie goed, nè! Jy spog oor die slegte dinge wat jy doen. Maar God sorg nog altyd vir my. Jy maak heeldag planne om ander se lewe deurmekaar te krap. Jy spesialiseer in leuens. Jy wil ander seermaak met elke woord wat jy sê. Jy kies eerder die slegte as die goeie. Jy lieg eerder as om die waarheid te praat. Jy kry lekker as jy ander seermaak met wat jy sê, jou leuenaar. Maar God sal jou jou verdiende loon gee. Hy sal jou uit jou blyplek pluk en jy sal in die dood beland. Die mense wat doen wat God vra, sal dit sien en vol ontsag vir God wees. Hulle sal lekker vir jou lag en spottend sê: “Kyk wat gebeur met iemand wat sonder God wil leef. Hy het gedink geld kan vir hom alles koop. Hy het sterk geword deur ander te vernietig.” Maar ek is by God. Daar is ek soos ’n boom wat welig groei. Ek weet God sal altyd na my omsien. Hy sal vir my sorg. Ek sal altyd vir U met my hele hart dankie sê vir alles wat U vir my doen. U is so wonderlik goed vir my. Saam met u kinders sal ek U loof. *** Dis net ’n baie dom mens wat kan dink dat God nie daar is nie. Sy optrede wys dit. Hy doen dinge waarvan God niks hou nie. Lieg en bedrieg is sy voorliefde. Alles wat hy doen, is sleg. God soek oral na iemand wat die verstand het om Hom te dien en te doen wat Hy vra. Alle mense het die verkeerde pad begin loop. Hulle was almal ewe korrup. Nie een het daarin belanggestel om te doen wat God wil hê nie. Sal die slegte mense nooit leer nie? Hulle behandel die kinders van God sleg. Hulle buit sy kinders uit. Hulle praat nie eens met God nie. Maar hulle gaan baie groot skrik! Hulle broeke gaan bewe van vrees, maar vir iets waarvoor ’n mens nie moet bang wees nie. Mense wat teen God se kinders baklei, sal deur God vernietig word. God se kinders sal hulle skrik maak, en hulle sal weghardloop. Want God het hulle verwerp. Ag, mag die Here sy kinders in nood kom help! Sy kinders sal so bly wees wanneer God hulle situasie heeltemal verander. *** *** God, red my, asseblief! U is baie sterk. Laat die regte dinge met my gebeur. God, help my wanneer ek tot U bid. Moet my nie ignoreer as ek by U kom hulp vra nie. Mense wat ek nie ken nie, probeer my onderkry. Mense wat geweld gebruik, wil my doodmaak. Vir God het hulle geen respek nie. Gelukkig help God my altyd! Die Here hou my lewe in sy hand vas. Hy sal die kwaad wat mense my wil aandoen, op hulle eie koppe laat neerkom. Omdat U goed is vir u kinders, vra ek dat U hulle sommer vinnig van die aarde afvee. Ek wil graag vir U iets doen om vir U dankie te sê, selfs meer as wat U vra: ek wil U kom loof, Here, want U is baie goed vir al u kinders. U het my uit my nood gered. U het vir my gewys hoe mense wat my wou doodmaak, self sleg daarvan afkom. *** God, hoor my tog as ek bid! Moenie u rug vir my keer as ek by U om hulp kom vra nie! Steek u hand uit en help my! Alles is deurmekaar in my kop. Ek weet nie wat om te doen nie. Binne-in my woel dit heeltyd. Mense wat niks van my hou nie, los my nie uit nie. Slegte mense maak die wêreld vir my bitter moeilik. Hulle praat aanmekaar kwaad van my. Hulle behandel my soos ’n vloerlap. Ek kan dit nie meer uithou nie. Alles word net te veel vir my. Ek is bang om dood te gaan. Ek bewe soos ’n riet van vrees. Ek het by myself gedink: As ek maar net kan wegvlug van hierdie probleem af. Ek sou op ’n ander plek gaan bly het. As ek vlerke soos ’n voël gehad het, het ek ver weggevlieg. Ek sal so ver wegvlug dat niemand my kan kry nie. Op ’n eensame plek sal ek haastig gaan wegkruip. Daar sal ek veilig wees teen al die mense wat niks van my hou nie. Slaan daardie mense wat my wil seermaak heeltemal uitmekaar, Here! Gee dat hulle mekaar nie sal verstaan nie. Al wat hulle kan doen, is baklei. Hulle is ’n spul moeilikheidmakers. Wat hulle doen, is nie reg in u oë nie. Hulle lieg en bedrieg sonder ophou. Hulle steel dinge wat aan ander behoort. Die slegste van alles is dat dit nie my vyand is wat my so verneder het nie. Anders kon ek dit nog verdra. Dit was ook nie iemand wat niks van my hou nie. Anders kon ek uit sy pad probeer bly. Nee, dit is jy, my beste vriend! Ons ken mekaar baie goed. Ek het jou met my lewe vertrou. Saam het ons groot geheime met mekaar gedeel. Ons het saam kerk toe gegaan om saam met ander gelowiges die Here te dien. Maak hierdie slegte mense dood, Here! Ek wens dat hulle sommer in ’n oogwink sal verdwyn. Hulle leef net om kwaad te doen. Hulle is deur en deur sleg. Ek leef net uit God se hand. Tot Hom bid ek. Die Here sal my uit hierdie probleem red. Enige tyd van die dag of nag kan ek met Hom praat. Ek kla en sug. Ek sal vir die Here sê wat my pla. Ja, ek sal heeldag my hart vir Hom oopmaak. Hy weet wat my ongelukkig maak. Hy help my as ek sy hulp vra. Hy sal my red. Ek sal weer in vrede met alle mense kan lewe. Daar is so baie mense wat die wêreld vir my moeilik maak. God sal help as ek Hom vra. Hy sal daardie skurke straf vir alles wat hulle aan my gedoen het. Hy regeer nog altyd. Hy sal hulle straf omdat hulle nie omdraai en agter Hom aanloop en Hom dien nie. Daardie oneerlike mense is baie glad met die mond. Hulle praat mooi woordjies, maar hou nie by hulle beloftes nie. Hulle woorde klink so goed, maar maak baie seer. Hulle is op die oorlog uit. Hulle maak mense dood. Los jou bekommernisse in die Here se hand! Hy sal vir jou sorg! Hy sal niemand wat Hom dien, ooit in die steek laat nie. Maar, God, U sal daardie skelms straf. U sal hulle vernietig. Hulle is oneerlik. Hulle wil ander mense se lewe vernietig. U sal hulle laat sterf terwyl hulle nog baie jonk is. Ek sal net op U vertrou, Here! *** Wees goed vir my, God, want daar is mense wat my in die grond in wil trap; hulle voer die hele dag deur ’n stryd teen my. Hulle maak die lewe vir my bitter moeilik. Hulle jaag my die hele dag. Daar is baie trotse mense wat teen my baklei. As ek begin bang word, Here, besluit ek net daar om op U te vertrou. Ek prys God vir sy belofte dat Hy my sal help. Op Hom vertrou ek sonder om bang te wees. Mense kan niks aan my doen nie. Hulle is maar klein en swak. Daardie slegte mense is oneerlik. Hulle verdraai aanmekaar wat ek sê; hulle dink die hele tyd slegte planne uit om my seer te maak. Hulle hou my dop vir ’n geskikte geleentheid om my dood te maak. Sal hulle loskom met al die verkeerde dinge wat hulle doen? Nee, laat almal wat U nie dien nie, tot ’n val kom, o God! Laat hulle u woede voel. U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is. My trane sal ’n dam volmaak. U het daarvan boek gehou, U weet. As ek U die dag om hulp kom vra, sal almal wat nie van my hou nie weghardloop. Ek weet dat God aan my kant is. Hy staan by my. Ek prys God omdat Hy belowe het dat Hy my sal help. Ek loof die Here. Hy hou sy woord. Ek vertrou op God; daarom is ek nie bang nie. Mense kan niks aan my doen nie! God, aan U het ek ook beloftes gemaak. Ek sal dit nakom. Ek wil U loof om dankie te sê dat U my help. Dis wat ek vir U wil terugdoen, want U het my uit die dood gered. U het my gehelp om saam met U op die pad van die lewe te bly, al was dit baie moeilik. U het my in die lewe gehou. *** God, wees asseblief goed vir my. Wees goed vir my, want ek kruip by U weg. U moet my beskerm totdat die gevaar verby is. In my nood bid ek tot die allerhoogste God. Dit is Hy wat my altyd sal help. Daar uit sy woonplek in die hemel sal Hy my bystaan. Hy sal my uit my nood red. Slegte mense wat my wil laat ondergaan, probeer skande oor my bring. Omdat God vir my omgee, sal Hy keer dat dit gebeur. Ek bly tussen mense wat net so gevaarlik is soos honger leeus. Hulle staan reg om ander uitmekaar te skeur. Hulle wil baie graag kwaad met kwaad vergeld. Daarvoor gebruik hulle hulle skerp tonge. Met kwaadpratery en leuens wil hulle ander vernietig. God, wys vir ons dat niemand groter is as U nie. Selfs nie eens in die hemel is iemand belangriker as U nie. U is so groot dat elkeen op aarde dit moet kan raaksien. Mense wat oneerlike dinge sê, het hulle bes probeer om my onder te kry. Hulle het my vertrap. Maar gelukkig het hulle self in die gat geval wat hulle vir my gegrawe het. God, daar is vrede in my hart. Ek voel weer veilig. Ek is rustig en kalm. Daarom wil ek sing. Ek wil lofliedere sing om U te eer. Ek sal baie vroeg in die môre opstaan. Laat ek my musiekinstrumente nader trek. Daarmee wil ek die dag wakker sing. Tussen verskillende volke sal ek U prys, Here. Ek sal lofliedere sing om U tussen vreemde nasies te eer. Ek doen dit omdat u liefde vir my baie groot is. Dit is so groot dat ’n mens dit nie kan meet nie! En U bly getrou. God, wys asseblief vir ons dat U die grootste is. Selfs nie eens in die hemel is iemand wat belangriker is as U nie! U is so groot dat elkeen op aarde dit moet kan raaksien. *** God het vir al die magtige mense gevra: Neem julle die regte besluite? Is julle regverdig as julle in die sake tussen mense oordeel? Nee, want julle is sleg. Oral waar julle kom, baklei julle. Julle ken net die taal van geweld. Hulle is van kleins af al op die verkeerde pad. Van jongs af praat hulle nie die waarheid nie. Hulle is baie gevaarlik. Soos slange wat pik, doen hulle dinge om mense seer te maak. Hulle luister na niemand nie. Hulle kan ook niks hoor nie. Daarom luister hulle nie na goeie raad nie. God, keer tog dat daardie slegte mense kwaad doen! Keer dat hulle soos jong leeus ander mense seermaak, Here! Laat hulle verdwyn soos water wat in die grond wegsyfer. Gee dat hulle wapens geen skade aan ander mense aanrig nie. Hulle moet wegraak, soos ’n slak verdwyn as jy sout op hom gooi. Laat hulle soos ’n dooie baba wees na ’n miskraam. Sorg dat hulle nooit eens die lewe sien nie. Raak ontslae van hulle soos ’n mens onkruid uittrek en weggooi. Laat die wind hulle wegwaai terwyl hulle jonk is. Mense wat U dien, sal bly wees as hulle sien hoe U slegte dinge straf. Hulle sal vol vreugde wees as hulle sien hoe U slegte mense vergeld vir hulle slegte dade. Almal wat dit raaksien, sal sê: Kyk, die Here beloon diegene wat Hom dien! Ja, daar’s regtig ’n God wat sorg dat reg op die aarde geskied. *** Red my van almal wat niks vir my omgee nie, my God! Bewaar my teen mense wat met my baklei! Red my van hulle wat doen wat verkeerd is in u oë! Verlos my van mense wat my wil doodmaak. Help my teen mense wat lief is vir geweld, wat ’n hinderlaag opgestel het om my dood te maak. Hulle wil my aanval. Maar ek is onskuldig. Ek het nie verkeerd gedoen nie. Ek het niks verkeerds gedoen nie. Tog maak hulle dit vir my moeilik. Hulle kan nie vinnig genoeg op my afstorm nie. Kom kyk wat hulle doen, Here. Help my! Here, U is nog altyd die sterkste. U is die God van Israel, die groot Bevelvoerder. Gryp in! Moenie goed wees vir daardie spul wat verkeerde dinge doen nie. Jy kan nie op hulle vertrou nie. Moenie aan hulle genade betoon nie. Daardie slegte mense kom keer op keer terug om my seer te maak. Dan lawaai hulle soos ’n klomp honde. Hulle loop rond om te kyk waar hulle kan kwaad doen. Hulle geskinder maak ander mense baie seer. Hulle tonge is soos skerp messe wat mense stukkend steek. Hulle dink dat niemand sal hoor wat hulle sê nie. Here, U lag hulle uit. U maak ’n grap van almal wat U nie dien nie. U gee my baie moed. Daarom vertrou ek op U. U maak my sterk, God, U pas my veilig op. Ek skuil by U. Daarom help U my, want U bly getrou aan my. U sorg dat ek staande bly teen daardie spul wat niks van my hou nie. Ek sal op hulle neerkyk. Moenie daardie slegte spul te gou doodmaak nie, Here! U kinders moet die skurke nie so gou vergeet nie. Laat u kinders sien watter slegte dinge hulle doen. Straf hulle op so ’n manier dat u kinders dit kan raaksien. Laat hulle sleg daarvan afkom, Here. Beskerm ons teen hulle. Met hulle gepraat doen hulle baie skade. Hulle dink hulle is belangriker as ander mense. Laat hulle neerslaan. Hulle lieg en praat lelik. Verwoes hulle terwyl U kwaad is, Here! Laat hulle van die aardbol af verdwyn. Laat hulle besef dat U oor u kinders heers. U is die Here oor alles. Daardie slegte mense kom keer op keer terug om my seer te maak. Dan lawaai hulle soos ’n klomp honde. Hulle loop oral rond. Hulle loop rond om te kyk waar hulle kan kwaad doen. Hulle soek oral moeilikheid. Hulle hou aan totdat almal later van hulle weet. Maar ek sal U prys, Here. Elke oggend as ek wakker word, is ek so bly dat ek juig. Want U bly getrou aan my. U het my opgepas toe ek in die nood was. U maak my sterk. Ek sal lofliedere sing om U te eer. God, U is vir my baie goed. U maak my sterk. En ek kruip by U weg. U bly getrou aan my. *** *** God, U het ons van U af weggestoot! U het ons in stukke geskeur toe U baie kwaad vir ons was. Maak asseblief weer soos voorheen die lewe vir ons mooi. U het die hele wêreld rondom ons uitmekaargeskud. U het ons hele lewe uitmekaar laat val. Wil U nie al die stukkende dele weer bymekaarsit nie? Maak ons weer heel. Ons is moedeloos. U het u kinders die harde kant van die lewe laat sien. Ons was soos dronk mense wat rondgeslinger het. U beskerm almal wat by U kom wegkruip. U spaar almal wat U dien se lewe. U beskerm hulle teen hulle vyande. Red nou al u kinders met u groot krag. U het ons lief. Red ons! Daar uit die plek waar Hy aanbid word, het God vir sy kinders gesê: “Daar is baie plekke in die land wat Ek vir julle sal gee. Die hele land is Myne. Ek het vir julle elkeen plek gemaak. In Juda se gebied bly die koning. Ook die gebiede rondom julle is Myne om daarmee te maak wat Ek wil. Ek het mag oor julle bure, Ek regeer oor hulle.” Die Here se kinders het gesê: Daar is niemand wat ons kan help om ons vyande te verslaan nie. Hulle bly in sterk stede. God, U het ons van U af weggestoot. God, U lei en beskerm ons soldate nie meer nie. Help ons teen ons vyande. Om op mense te vertrou help ons nie. As die Here ons help, is ons aan die wenkant. Hy sal met ons vyande afreken. *** God, luister tog wanneer ek by U hulp kom vra. Luister aandagtig na my as ek bid. Wanneer ek moedeloos en wanhopig is en voel of ek amper dood is, bid ek ernstig. Beskerm my sodat ek nie doodgaan nie. U alleen pas my op. U is soos ’n skuilplek waarheen ’n mens vlug as daar groot gevaar kom. U beskerm my teen my vyande. Ek wil vir altyd by U wees. As U my beskerm, is ek elke dag veilig. God, U weet dat ek belowe het om U te prys. U oorlaai my met goeie dinge. U doen dit vir almal wat U dien. Mag ons aardse heerser lank lewe. Mag mense nog lank oor hom praat. Gee dat hy altyd aan U sal vashou. Ek bid dat U hom sal beskerm omdat U goed en vol liefde is. Dan sal ek altyd liedere sing om U te eer. My belofte om U te eer wil ek elke dag nakom. *** Ek is rustig wanneer ek by die Here is. Dit is Hy wat my elke keer red as ek in die moeilikheid beland. By Hom alleen is ek veilig. Hy verlos en beskerm my. Al is ek in die moeilikheid, sal niks my ooit onderkry nie. Partykeer vra ek: Hoe lank gaan mense my nog probeer onderkry? Hulle beskuldig my van allerhande dinge. Hulle wil my onderstebo stamp soos ’n lendelam klipmuur sommer omval. Hulle wil my doodmaak. Hulle wil my laat neerslaan. Daardie mense praat agteraf van my. Hulle vertel leuens. Hulle praat mooi woordjies, maar binne-in dink hulle anders. Hulle lewe is vol slegte dinge. Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my. Hy is soos ’n wegkruipplek waar ek veilig is. Daarom sal niks my onderkry nie. Vir my is dit ’n groot eer om God se hulp te kom vra. Ek kry arms vol krag wanneer ek voor Hom staan met my probleme. Ek soek veiligheid by my God. Kinders van die Here, julle moet altyd op Hom vertrou. Praat julle hart leeg by Hom. God is die Een wat ons sal beskerm, altyd! Hoor nou wat ek sê: mense beteken niks. Op mense kan jy nooit vertrou nie. Hulle is onbetroubaar. As julle hulle weeg, sien jy hulle is niks. Selfs al span hulle kragte saam, beteken hulle minder as niks. Moenie op mense se krag vertrou nie. Om mense te besteel gaan jou nie help nie. Wanneer jy ryk word, oppas dat dit nie jou hart inneem nie. Daar is twee dinge wat vir my baie duidelik geword het: Dis net God wat regtig mag het. ’n Mens kan net op die Here vertrou. Want Hy het ons lief. Here, U beloon elke mens volgens wat hy doen. *** God, U is my God! Ek soek U! Ek verlang na U soos iemand wat baie dors is. Met alles wat ek het, begeer ek om by U te wees. Soos iemand wat water in die woestyn soek, soek ek na U. Ek verlang met my hele wese om U te aanbid. Ek wil u krag en u grootheid beleef. Dit is beter om u groot liefde te ervaar as om baie oud te word sonder U. Ek loof U daarvoor. Ek sal U met my hele lewe prys. Ek sal my hande in die lug steek om U groot te maak. Om U te prys maak my lewe vol en ryk. Ek loof U vir die goeie geskenke wat U vir my gee. Ek is bly oor U. Ek sal u Naam vrolik besing as ek gaan slaap of as ek in die nag oor U dink. U het my gehelp. U beskerm my en ek is baie bly daaroor. Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U dra my deur die lewe. Almal wat my wil doodmaak, sal in die aarde wegsink. Hulle soek hulle eie dood. Hulle sal in ’n geveg omkom, en niks sal van hulle oorbly nie. Die regeerder sal bly wees oor God. Elkeen wat erken dat die Here God is, sal sy Naam grootmaak. En almal wat op God vertrou, sal ook bly wees. Maar Hy sal almal wat loop en lieg se monde stilmaak. *** God, help my asseblief as ek oor my probleme bid. Beskerm my sodat ek nie bang word vir mense wat my kwaad wil aandoen nie. Pas my so goed op dat die planne wat bose mense teen my maak, nie uitwerk nie. Keer dat daardie kwaaddoeners se gekonkel my ontstel. Met hulle skerp tonge vernietig hulle mense se lewens. Hulle woorde is soos giftige pyle wat mense tref. Sonder dat die onskuldige mens dit verwag, loop hulle hom onderstebo. Uit die bloute skiet hulle hom. Hulle konkel agteraf om mense tot ’n val te bring. Hulle dink niemand sal hulle raaksien nie. Hulle beplan om ewe skelm allerhande dinge te doen. Hulle dink hulle bose planne is fyn uitgewerk. Hulle hou alles ’n groot geheim. God sal vinnig met daardie kwaaddoeners afreken. Sonder dat hulle dit verwag, sal Hy hulle terugkry vir wat hulle gedoen het. Hulle slegte planne bring hulle tot ’n val. Mense wat hulle sien, sal bly wees. Dan sal almal vir God groot respek hê oor wat Hy gedoen het. Hulle sal raaksien wat Hy doen. Almal wat die Here dien, sal bly wees omdat hulle Hom dien. Laat hulle by Hom wegkruip. Laat almal wat die Here liefhet, Hom prys. *** God, U verdien dat ons U prys. U verdien dat ons ons beloftes aan U nakom. Want U luister na elke gebed. Alle mense moet na U toe kom met hulle sonde. Ons het verkeerde dinge gedoen. En nou het dit ons ingehaal. Maar U sal ons vrymaak daarvan. Die gelukkigste mens op aarde is daardie persoon vir wie U uitkies en toelaat om by U te kom. U bring hom na U toe sodat hy saam met U kan lewe. Ons wil elke dag leef uit die goeie dinge wat U vir ons gee. Omdat U getrou is, antwoord U ons en doen groot en wonderlike dinge vir ons. U help ons as ons bid. U red ons. Daarom vertrou mense oor die hele aarde op U. U krag laat groot berge vasstaan. Daar is geen einde aan u mag nie. U laat die onrustige see weer kalm word. U maak die groot golwe stil. U laat die bakleiery onder volke ophou. Mense oor die hele aarde wat dit raaksien, besef hulle moet U dien. Want U is baie sterk. Van die een kant van die aarde tot by sy ander kant maak U mense vol blydskap. U kom na hulle toe en gee hulle alles wat hulle nodig het. U maak die grond vrugbaar. God, die water wat U gee, is meer as genoeg. Dit bring groot oeste. Dit is alles wat U doen. U maak die hele aarde nat. Die harde grond word gou-gou sag na die reën wat U gee. Alles wat in die grond geplant word, groei vinnig. Omdat U vir ons goed is, gee U vir die boere die beste oeste wat ’n mens kan kry. Oral waar U ingryp, is daar meer as genoeg om van te leef. Selfs in die droogste dele van die land is daar genoeg kos vir die diere. Die heuwels is so groen dat dit lyk of hulle hulle hande in die lug opsteek van blydskap. Al die weivelde is vol vee. Die laagtes is toe onder koring. Dis of niks en niemand hulle vreugde kan keer nie. Almal op aarde, juig opgewonde! Maak God se Naam groot! Sing liedere om Hom te eer! Vertel hoe groot Hy is! Hy verdien dit. Sê vir God: Wat U doen, is te groot om in mensewoorde beskryf te word. U is baie sterk. U vyande lê teen die grond voor u voete. U is so groot dat alle mense laag voor U buig. U is so sterk dat mense wat U nie liefhet nie, ook op hulle knieë na U toe moet kruip. Almal op aarde moet U aanbid. Hulle moet liedere sing om U te eer. Hulle moet liedere sing om u Naam groot te maak. Kom kyk na wat die Here gedoen het. Kom luister na wat Hy vir mense gedoen het. Die see het Hy in droë grond verander. Hy het Israel kurkdroog deur die Rietsee en die Jordaan laat stap. Sy kinders was baie bly hieroor. So sterk is die Here dat Hy altyd in beheer van sake is. Hy weet wat almal op aarde doen. Hy hou sy oog op almal. Mense moenie dink hulle kan teen die Here in opstand kom nie. Kom, loof ons God, alle volke! Sing kliphard sodat julle lofliedere oral kan weerklink. Hy gee aan ons lewe. Hy sorg dat niks ons onderkry nie. God, U het mooi gekyk of ons alles doen wat U sê. U wil dat ons ophou om verkeerde dinge te doen. Daarom het U ons skoon gewas. Ons was vasgevang. U het ’n swaar las op ons skouers gesit. Mense het bo-oor ons geloop. Ons moes deur moeilike krisisse worstel. Dit het gevoel of ons enige tyd kon doodgaan. Maar U het ons met u goedheid deurgehelp. Hierna het U ons oorlaai met goeie dinge. Ek sal vir U kom dankie sê vir alles wat U vir my gedoen het. Ek sal vir U doen wat ek belowe het. Die beloftes wat ek in my nood aan U gemaak het, sal ek nakom. Ek sal die heel beste wat ek het, vir U gee. Die allerbeste wat ek het, sal ek na U toe bring. Julle wat God dien, kom luister na wat ek wil sê! Ek wil vertel wat Hy alles in my lewe gedoen het. Ek het nog maar net die Here gevra om my te help toe ek in die moeilikheid was. Toe het ek al klaar ’n loflied begin sing. Daar was nie verkeerde dinge in my hart nie. Anders sou die Here nie geluister het nie. God het my gehelp. Skaars het ek Hom om hulp gevra, toe help Hy my. God moet geprys word. Hy het my nie geïgnoreer nie. Hy was getrou aan my. *** Mag God sy hart vir ons oopmaak en vir ons voorspoed gee. Mag Hy self kom om ons te red. Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is. Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red. God, al die volke moet U prys. Hulle almal moet u Naam saam prys. Volke wat U nie ken nie, sal bly wees en juig omdat U regverdig teenoor hulle optree. U heers oor al die volke op aarde. En U lei alle mense. God, al die volke moet U prys. Hulle almal moet u Naam saam grootmaak. Op die landerye staan daar goeie oeste. God is ons God. Hy gee vir ons voorspoed. God gee vir ons voorspoed. Mense uit alle uithoeke van die aarde moet dit sien. Dan sal hulle Hom eer. *** Wanneer God ingryp, spat sy vyande in alle rigtings! Dié wat Hom haat, vlug dan so al wat hulle kan! U blaas hulle uit die pad uit soos ’n bol rook. U laat hulle wegsmelt soos ’n kers in die vuur. So vergaan goddelose mense as hulle U sien. Maar sy kinders sal bly wees. Juigkrete sal op hulle lippe wees as hulle voor God staan, hulle sal vrolik en bly wees. Kom sing ’n nuwe lied om God groot te maak, eer Hom met julle lied. Sing ’n pad van lof en vreugde oop voor Hom wat bo die wolke uittroon, jubel opgewonde oor Hom. Sy Naam is die Here, niemand anders nie! God is ’n Vader vir swak mense, vir kinders wat nie ouers het nie. Hy staan aan die kant van hulpelose weduwees. Hy beskerm hulle. Daar uit sy hemelse woning wat eenkant is, steek God sy hand uit na swak mense. God tel eensames op en maak hulle deel van ’n familie, Hy sluit tronkdeure vir gevangenes oop, maar laat al sy vyande diep in ’n woestyn bly. God, daardie dag toe U u volk in Egipte gaan haal het, toe U ’n pad deur die woestyn oopgestap het, het die aarde gebewe van vrees, die hemel het strome water voor U uitgegiet. Dit alles het daar by Sinai gebeur voor U, o God; daar het alles en almal voor Israel se God gebewe! God, U het die hemel geskeur, stortreën het oor die aarde uitgesak, ’n droë land het skielik weer begin leef. U het vir u eie mense ’n blyplek gegee. God, U is so ontsettend goed; daarom gee U vir swak mense net die allerbeste, u hulpelose volk kry selfs ’n eie land. “Goeie nuus! Goeie nuus!” roep God uit. Magtige leërs wat met God se volk baklei, het die hasepad gekies, [13-14] konings het in alle rigtings gehardloop. Hulle het gevlug. Terwyl Israel se soldate nog gerus het na hulle groot oorwinning, het die vroue by die huis al die buit begin verdeel, kosbare skatte is onder mekaar uitgedeel. God het die onmoontlike reggekry, ja, *** so verrassend soos sneeu op die donkerste berg in Israel, so verrassend, so groot is God se oorwinning. Julle, reuseberge wat bo die aarde uittroon, waarom kyk julle so jaloers na die berg daar waar God se woonplek staan? Daar bly Hy vir altyd. Julle jaloesie help net mooi niks, want God is by sy volk. Duisende hemelse oorlogswaens omring God se woonplek. Toe U na die gebeure by Sinai u woonplek binnegegaan het, was u hemelse leërmag saam met U. U het krygsgevangenes saamgevat om vir almal te wys U het gewen. Almal het geskenke na U toe aangedra, selfs u vyande het met geskenke laag voor U kom buig toe U in u woonplek ingestap het, Here God! Loof die Here! Hy dra ons elke dag! God help ons. God red ons as ons in die moeilikheid is. Die Here ons God pas ons op as ons lewe in gevaar is. Maar God trap al sy vyande onder sy voete plat. Mense wat aanhou sonde doen, vee Hy van die aardbol af. Dit help nie dat God se vyande probeer wegkruip nie; Hy gaan haal hulle uit al hulle wegkruipplekke uit. God se kinders sal sien hoe hulle vernietig word, hulle bloed sal deur die honde opgelek word. God, mense sien hoe U triomfantlik na u woonplek toe kom. My God, U is die sterkste, U het gewen. My Koning, U is op pad na u heilige woonplek! Mense stap voor U uit en sing lofliedere. Musiekinstrumente bespeel vrolik u lof. Jongmeisies slaan vol vreugde op tamboeryne. Groot kore loof God, al die mense van die Here maak sy Naam groot. Al die leiers van sy volk is daar! Benjamin is die jongste. Hy is hulle leier. Daar is Juda se vorste, en dié van Sebulon en Naftali. God, wys asseblief weer hoe sterk U is. Laat ons weer u groot krag sien waarmee U ons gered het. Wys dit hier uit u woonplek waar magtige mense laag in die stof voor U buig en vir U geskenke bring! Vat daardie spul Egiptenaars vas, hulle dink mos hulle is die sterkste in die hele wêreld, soos ’n seekoei tussen die riete. Hulle trap op ander volke om geld te maak. Hulle maak oorlog met almal en jaag alle volke uitmekaar. Laat Egipte voor U kom buig, laat hulle laag voor U buig met arms vol geskenke, laat die mense van Etiopië U kom smeek om hulle te help! Sing lofliedere, al die volke op aarde! Sing ’n lied om God se Naam groot te maak, sing om die Here te eer! Eer Hom wat bo-oor die hemel troon, die hemel wat van die begin af daar is. God se magtige stem dreun deur die ganse wêreld. Buig voor Hom, erken dat Hy die sterkste is! Hy heers oor Israel. Hy heers oor die aarde. Almal bewe as Hy uit sy woonplek kom! Hy is Israel se God, Hy maak sy kinders sterk. Hy sorg vir elkeen wat voor Hom buig. God moet geloof word, nou en vir altyd! *** God, red my! Ek is in groot moeilikheid. My probleme word net al hoe groter. Dit lyk nie of die gevaar gaan ophou nie. Ek voel of ek in modder wegsak. My probleme kry my onder. Dit voel of ’n rivier oor my geloop het. Ek is moeg om hulp geroep. My keel is al seer van die smeek. My oë het ook al ingegee soos ek kyk of God my nie sal kom help nie. Ek wag heeltyd dat my God my moet kom help. Daar is so baie mense wat my haat, ek kan hulle nie eens tel nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Hulle staan reg om my tot ’n val te bring. Hulle is te sterk vir my. Al het ek niks van iemand anders gevat nie, moet ek nou al my goed vir hulle gee. God, U weet watter slegte dinge ek gedoen het. Dis nie vir U ’n geheim dat ek verkeerd geleef het nie. Groot en magtige Here, groot Bevelvoerder, ek wil nie daardie mense wat op U vertrou, teleurstel nie. Ek wil hulle wat by U kom hulp vra, nie in die skande bring nie, God van Israel. Omdat ek in U glo, kry ek baie swaar. Ek word sleggesê. Hulle verkleineer my. My familie maak of hulle my nie ken nie. My broers en susters keer my die rug toe. En dit omdat daar niks is wat ek meer geniet nie as om kerk toe te gaan. Maar die mense wat niks van U hou nie, skel my daaroor uit. Ek het baie gehuil en gevas. Ook daaroor het die mense my gespot en beledig. Ek het rouklere aangetrek om te wys dat ek hartseer is. Maar daardie slegte spul het ’n grap van my gemaak. Mense in die dorp skinder van my. Dronklappe sing spotliedjies oor my. Maar ek bid tot U. By U vra ek hulp, Here! Antwoord my tog. Wanneer die tyd vir U reg is, sal U my help, God. U liefde vir u kinders is baie groot. Omdat U getrou is, maak U ons lewe weer heel. Help my uit die gemors, Here! Moenie dat ek ondergaan nie. Laat my wegkom van die mense wat my haat. Moenie dat die water oor my gaan nie. Gee dat probleme my nie onderkry nie. Ek wil nie doodgaan nie. Help my, Here, want U is baie lief en goed vir my. Vou my toe in u groot liefde. Ontferm U oor my. Ek dien U. Moenie u rug vir my draai nie, want ek is in baie groot nood. Antwoord my tog. Help my tog gou! Kom red my! Bevry my van hulle wat niks vir my omgee nie. Dis nie vir U ’n geheim dat hulle my beledig het en tot skande gemaak het nie. U weet wat my vyande met my gedoen het. Al die spot en vernedering breek my moed. Daar is geen krag meer in my oor nie. Ek het gewag dat iemand my hand moet kom vat. Maar niks het gebeur nie. Ek het gehoop dat mense my sal troos. Maar nie een het iets gedoen nie. Hulle het die lewe net nog moeiliker vir my gemaak. In plaas van kos en water wou hulle my gif en slegte asyn injaag. Here, gee dat daardie spul tot ’n val sal kom. Hulle dink dat niks met hulle sal gebeur nie. Hulle vier fees. Maar laat hulle val. Maak hulle blind. Laat hulle bene ingee sodat hulle altyd kruppel sal wees. Tref hulle met u woede! Straf hulle. Verander hulle blyplek in chaos. Sorg dat niemand meer daar bly nie. Doen dit, Here, want hulle geniet dit dat mense onder u hand ly. Hulle kry lekker oor die lyding wat U oor u kinders bring. Tel ook dit by hulle rekening wat hulle aan U verskuldig is. Moenie dat hulle ooit van hulle skuld vrykom nie. Vergeet vir altyd van hulle. Hulle name mag nooit weer genoem word tussen mense wat U dien nie. Ek is ’n ellendige mens wat vol pyn is. Beskerm my met u groot krag, God! Dan sal ek God loof! Sy Naam sal ek grootmaak in my liedere! Ek sal vir Hom dankie sê. Dit is vir Hom belangriker as ’n baie groot offer. Almal wat swaarkry, sal my lofliedere hoor. Hulle sal daaroor bly wees. Julle wat by God gaan hulp soek, sal weer nuwe moed skep! Die Here help mense wat sy hulp vra. Hy keer nooit die rug vir sy mense wat in die moeilikheid is nie. Alles in die skepping wat die Here gemaak het, moet Hom loof! Alles dwarsoor die aarde moet Hom prys. Loof God, want Hy red sy kinders. Hy maak hulle stukkende lewens weer heel. Hy maak hulle lewens vol geluk. Hy sal vir sy kinders ’n plek gee om in te bly. Hulle eie kinders sal dit eendag erf. Daar sal almal wat die Here liefhet, vol blydskap woon. *** God, moenie langer wag nie. Red my! Here, help my tog gou! Daar is mense wat my wil doodmaak. Laat hulle self in die moeilikheid beland. Laat hulle skaam kry oor wat hulle doen. Laat mense wat dit geniet om my te sien swaarkry, weghardloop. Laat mense wat met my spot, voel hoe dit is om in die skande te kom. Hulle lag my mos uit en maak ’n gek van my. Almal wat by U gaan hulp soek, moet bly wees. Laat mense wat U liefhet, elke dag sê: Daar is niemand groter as God nie! Ek is in groot moeilikheid. Daarom het ek u hulp nodig. God, help my tog gou! Kom haal my uit hierdie krisis uit. U is die Een wat my red. Here, moenie langer wag nie! Here, ek kruip by U weg! Moet my tog nie teleurstel nie! Help my! Laat my nooit skaam kry omdat ek op U vertrou nie. Daarom vra ek: Gryp in! Help my! Pas my asseblief op! Want U doen altyd wat reg is. Ek wil altyd by U kom wegkruip. U het my nog altyd gehelp. U pas my op. U sorg dat ek veilig is. U red my. My God, beskerm my teen hulle wat nie na U wil luister nie. Hulle wil alles met geweld oplos. Hulle doen heeldag verkeerde dinge. Help my asseblief, Here, want ek bou al my hoop op U. Van jongs af vertrou ek net op U. Van my geboorte af is U ’n steunpilaar vir my. Van daardie eerste oomblik af dat ek met soveel moeite in die wêreld gekom het, het U my beskerm. Daarvoor sal ek U altyd prys. Mense vertel vandag nog dat dit ’n wonderwerk is dat ek leef. Dit alles is u werk. Daarom kom ek nou nog na U toe vir hulp. Ek kan U net aanhou loof. Ek sal U altyd bewonder. Here, moenie u rug vir my draai noudat ek oud geword het nie! Moet my nie alleen los noudat ek swak is nie. Help my asseblief, want hulle wat my nie liefhet nie, hou my fyn dop. Hulle wil my doodmaak. Hulle skinder agter my rug en sê: “God het hom verlaat. Ons kan hom maar onderstebo loop. Niemand sal hom tog help nie.” God, moet tog nie u rug vir my draai nie. Moet my nie alleen los nie! My God, kom help my tog gou! Laat hulle wat my haat, tweede kom. Mag hulle in die aarde wegsink. Hulle wou my tot ’n val bring. Sorg asseblief dat hulle self in die skande kom. Ek sal altyd op U bly hoop. Ek sal altyd vertel van die goeie dinge wat U doen. Ek sal sonder ophou sê hoe U mense help. Ek het nie genoeg woorde om al u verlossingsdade mee te beskryf nie. Hulle is meer as wat ek kan tel. Ek sal aanhou vertel van al die wonderlike dinge wat die Here gedoen het. Oor die bevryding wat net U alleen kan gee, sal ek praat. God, U was vir my soos ’n onderwyser van kleins af. Nou nog vertel ek van die wonderlike dinge wat U gedoen het. Ja, selfs noudat ek oud en grys geword het, sal ek dit aanhou sê. God, moenie nou u rug vir my draai nie. Ek wil eers vir my kleinkinders vertel hoe sterk U is. Almal kan u groot werke raaksien. God, daar is niemand soos U nie; nie hier op aarde nie, en ook nie in die hemel nie. U het baie krisisse oor my gebring, maar U het my elke keer gered. U het my elke keer uit die kloue van die dood kom haal. Laat mense weer respek vir my kry. Help my. Dan sal ek U met my musiekinstrumente prys. My God, ek sal U loof. U is getrou. Met my musiek wil ek U eer. Niemand is soos U nie. U is die Heilige van Israel. Ek sal opgewonde juig wanneer ek vir U lofliedere sing. Ek sal bly wees, omdat U my gered het. Ja, ek sal U elke dag prys, want U het gesorg dat my lewe veilig is. Hulle wat my kwaad wou aandoen, sal self gespot word. Hulle sal self in ellende beland. O God, leer die koning om te regeer soos U dit wil hê. Leer hom om reg op te tree soos U wil. Wys hom hoe om reg op te tree. Laat hy altyd mense wat swaarkry, regverdig behandel. Die berge en heuwels sal bly wees omdat daar vrede is, vrede omdat die koning doen wat reg is. Hy sal mense help wat hulp nodig het. Hy sal arm mense help. Maar mense wat ander sleg behandel, sal hy straf. Dan sal u kinders U altyd dien, so lank as wat daar ’n son en ’n maan is. Mag die koning vir sy mense soos lekker reën na ’n groot droogte wees wat die aarde deurdrenk. Mag sy mense voorspoedig wees terwyl hy regeer. Mag hy sy mense aanmoedig om te doen wat God van sy mense wil hê totdat die maan nie meer daar sal wees nie. Mag hy oor ’n yslike groot gebied regeer, tot aan die eindes van die aarde. Mag die mense wat uit die woestyn kom, voor hom kniel en sy vyande magteloos voor hom in die stof kruip. Mag die mense van oor die hele wêreld vir hom geskenke bring om te wys hoe belangrik hy is. Mag hulle almal aan hom belastings betaal. Mag alle regeerders en nasies voor hom neerbuig om hom te dien. Hy sal mense wat niks het nie en om hulp smeek, gee wat hulle nodig het. Hy sal mense in groot moeilikheid help as hulle niemand het wat hulle kan help nie. Hy sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm. Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir hom baie belangrik. Lank lewe die regeerder! Mag hy ryk word omdat mense vir hom goud bring. Mag die mense God vra om die koning te help en om vir hom goed te wees. Mag hy oorgenoeg kos hê vir al sy mense, ja, selfs te veel. Mag sy oeste baie groot wees. Mag hulle hom vir altyd onthou. Mag hulle nog baie lank praat oor hoe ’n goeie koning hy was. Mag al die nasies mooi dinge oor hom sê en bly wees omdat hy koning was. Sê vir God, die Here, dankie. Hy doen groot dinge wat niemand anders kan doen nie. Loof Hom vir altyd, want Hy is wonderlik. Mag daar nie ’n plekkie op hierdie wêreld wees waar die mense nie besef hoe groot U is nie. Laat dit so wees, amen! Die gebede van Dawid die seun van Isai is nou klaar. God is goed vir almal wat doen wat Hy sê. Vir seker! Maar op ’n dag het ek begin twyfel of dit regtig so is. Ek het amper ophou glo, want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig. En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers op hulle. Niks bekommer hulle nie. Hulle is spekvet en gesond. Hulle is oor niks besorg nie. Hulle het geen moeilikheid nie. Hulle loop ewe trots rond. Want met hulle gewere en hulle vuiste los hulle al hulle probleme op. Hulle is vet, en hulle doen net wat hulle wil. Hulle het g’n respek vir iemand nie. Hulle spot met mense en dreig almal. Selfs God loop onder hulle tonge deur. En op aarde beledig hulle links en regs. Almal hang aan hulle lippe. Mense kan nie genoeg van hulle kry nie. Hulle sê vir almal: “God is vas aan die slaap. Wat weet die Allerhoogste van wat ons doen?” Hulle kom weg met moord! Niemand keer hulle nie terwyl hulle al meer geld maak. Ek het verniet gedoen wat God sê. Tevergeefs dat ek onskuldig is. My gebede het niks gehelp nie. Dit was ’n mors van tyd, want elke nuwe dag het daar ’n vrag vol nuwe probleme op my gewag. Daar was geen einde aan my swaarkry nie. Ek is elke dag soos ’n vloerlap behandel. Maar wag! As ek aanhou praat soos nou, sal ek ’n verraaier wees. Ek sal al u kinders verraai, Here! Ek het mooi probeer dink, maar ek kon nie verstaan hoekom ek so moes ly nie. Totdat ek op ’n dag in u heilige plek ingestap het. Toe het ek skielik die volle prentjie gesien: ek het besef waar goddeloses uiteindelik beland. Ek het besef dat slegte mense op ’n baie gladde pad stap. Op ’n dag laat U hulle planne skeefloop, dan beland hulle in die gemors. In ’n oogwink verander hulle lewe in chaos. Hulle kom tot ’n verskriklike einde. Hulle verdwyn so vinnig soos ons drome wanneer ons wakker word. Here, U vee slegte mense in ’n oogwink uit die pad uit. Toe ek kwaad vir U was en gevoel het dat U my verontreg, was ek baie dom, net soos ’n dier sonder verstand. Ek het my onnosel voor U gedra. Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie. U het my nog nooit alleen gelos nie. U hou my hand elke dag vas. U sal my op die pad lei waarop U wil hê ek moet loop. Later sal U ook vir my ’n plek daar by U gee. Here, daar is niemand so belangrik soos U in die hemel nie, ook nie hier op aarde nie. U is my hele lewe. Ek wil niks anders as U hê nie. Al gee my kragte in en al sit ek op moedverloor se vlakte: U, God, is steeds my krag. U is die Rots by wie ek altyd wegkruip. Ek behoort aan U vir altyd. Kyk net: almal wat U verwerp, gaan dood; U skryf hulle af. Maar ek geniet dit om dag na dag by God te wees. Ek kruip by die Here my God weg. Die lewende Here is my huis. Ek vertel vir almal hoe goed U is. God, hoekom het U u rug vir ons gedraai? Gaan U ons vir altyd wegstoot? Hoekom is U so kwaad vir u kinders? U gee nie meer soos voorheen vir ons om nie. Ons behoort dan aan U. Help ons almal wat U dien. U het ons baie lief. U het ons lank terug gekies om u spesiale kinders te wees. En U bly tussen ons. Kom help ons waar ons hier op die rommelhoop sit, Here! Ons vyand het alles wat ons het, verwoes, ook u woonplek. Boewe het al ons kosbare goed stukkend geslaan. Die plek waar ons U aanbid het, is afgebreek. U vyande het die plek kom vertrap waar U aanbid word. Alles behoort nou aan hulle. Hulle speel baas. Dit lyk of ’n storm ons getref het. Vroeër was alles baie mooi hier waar ons bly. Nou lyk dit of ’n hele weermag daaroor geloop het. Soldate het alles stukkend geslaan en geplunder. Hulle het die gebou afgebrand waar ons U aanbid. Vroeër, as ons hier gekom het, het dit ons altyd aan U laat dink. Hulle het u woonplek ontwy. Maar daardie slegte mense het gesê: “Wag maar, ons sal hulle in die grond in trap.” Al die plekke dwarsdeur die land waar ons U aanbid, het hulle afgebrand. Nou is hier niks meer oor wat ons aan U herinner nie. Hier is selfs nie meer iemand wat vir ons vertel wat u wil is nie. En niemand kan vir ons sê hoe lank dit so gaan aanhou nie. God, sê asseblief vir ons hoe lank hulle nog met ons gaan baklei. Hoe lank gaan hulle aanhou om u Naam te verag? Hoekom doen U niks hieraan nie? Straf hulle, asseblief! Vernietig hulle. Die Here is nog altyd my God. Hy is die Een wat oor almal regeer. Daarom kan Hy mense help waar hulle ook al is. Here, U het al die oseane gemaak. U hou dit alles in u hand. En U maak die seemonsters dood. Niks in die see hou vir U enige bedreiging in nie. Oor die hele wêreld laat U fonteine en waterstroompies opborrel. U laat groot en sterk riviere ophou vloei as U wil. U beheer lig en donker. Al die groot ligte in die hemel, die sterre en die son, het U gemaak. U hou dit in u hande. Daar is geen einde aan u krag nie. Nie eens die seisoene kan verander as U dit nie toelaat nie. U het dit ingestel. Here, u vyande spot met U. Sien dit tog raak. Die spul is dom. Hulle sleep u groot Naam deur die modder. Moet ons tog nie in hulle hande laat val nie. Moenie u rug vir ons draai nie. Ons vyande is soos ’n trop wilde diere wat alles verskeur. Onthou tog dat ons in groot moeilikheid is. Onthou, U het lank gelede ’n ooreenkoms met u volk gemaak: U het gesê U sal ons beskerm. Ons is nou diep in die moeilikheid. Oral in die land breek geweld uit. Dit gaan sleg met u kinders; ons word verdruk. Moet ons nie nou teleurstel nie. Red ons! Almal wat hulp nodig het, sal U loof vir u goedheid! Staan op, God! Doen tog wat reg is. Kyk hoe daardie slegte mense u Naam deur die modder sleep. Hulle hou heeltyd daarmee aan. Moenie dat hulle daarmee loskom nie! Onthou hoe u vyande teen U tekere gegaan het. Hulle hou nie op daarmee nie. *** Ons sê vir U uit ons hart uit dankie, o God. Ons loof U, want U is by ons. Oral vertel mense van die wonderlike dinge wat U gedoen het. “Op die regte tyd sal Ek mense regverdig oordeel,” sê God. “As alles op aarde en tussen die mense deurmekaarloop, is Ek die Een wat sal sorg dat alles nie uitmekaarval nie. “Vir die mense wat te veel van hulleself dink, sê Ek: Hou op daarmee. Vir slegte mense sê Ek: Moenie dink julle kan julle teenoor My belangrik hou of kanse waag nie.” Hou op om so vol van julleself te wees en maak of julle groter is as die Een wat in die hemel bly. Hou op om julle teen Hom te verset. Niemand in die hele wêreld kan sê wie regtig belangrik is en wie nie. God alleen kan dit doen, want Hy is die regter. Hy tel mense op, en Hy gooi hulle teen die grond. Net Hy besluit daaroor. Die Here het ’n beker vol wyn en giftige speserye in sy hand; dit is soos sy woede en straf is. Mense wat hulle nie aan die Here steur nie, sal die beker heeltemal leeg moet drink, elke druppel. Ek sal altyd vir almal van God vertel. Ek sal liedere sing om die God van Jakob mee te prys. God sê: “Die slegte mense se mag gaan Ek breek. Die goeie mense gaan Ek nog sterker maak.” *** Almal in Juda ken God. Vir die mense in Israel is Hy baie belangrik. Hy bly in die tempel in Jerusalem. Sy woonplek is op Sionsberg. Daar het Hy al die oorlogswapens opgefrommel. Hy het die oorlog gewen. Waarmee kan ek U vergelyk? U is groter en magtiger as die hoogste berge. U het die vyand oorwin sonder dat hulle ’n vinger kon verroer. Hulle is in hulle slaap oorval. Hulle is heeltemal verslaan. Nie een van hulle kon iets daaraan doen nie. As U praat, o God van Israel, steek perde met ruiters en al viervoet vas. Geen wonder mense het soveel respek en ontsag vir U nie. As U kwaad raak, wie sal dan nie skrik nie? Wie kan dan waag om voor U regop te staan? U het u vyande uit die hemel uit op hulle plek gesit. U het gesê wat U van hulle dink. Die mense op aarde kon maar net stilbly en bewend toekyk hoe God die kwaaddoeners kom oordeel het, en die mense wat swaarkry sonder iemand wat hulle kon red, kom help het. U grootheid kan ook gesien word in die manier waarop U mense straf. Straf is ook ’n instrument in u diens. Doen wat julle die Here beloof het. Almal wat naby Hom is, moet vir Hom geskenke van dankbaarheid bring. Alle mense op aarde moet vir die Een wat gedien moet word, geskenke bring. Die regeerders van hierdie wêreld is niks voor Hom nie. Hy breek sommerso hulle mag. Hulle staan maar net in ontsag voor sy grootheid. *** Ek vra vir God om my te help. Ek pleit by God dat Hy in my krisis moet ingryp. Luister tog na my! In my nood soek ek hulp by die Here. Ek word nie moeg om te bid nie. Snags maak ek nie ’n oog toe nie. Maar ek vind geen troos nie. Wanneer ek aan God dink, roep ek na Hom. Ek wil hê Hy moet hoor hoe swaar ek kry. Maar dit voel vir my of God Hom nie meer aan my steur nie. Ek is moedeloos. U hou my wakker. Daar is geen rus vir my nie. Ek is baie omgekrap. Ek het nie meer woorde oor om te sê hoe omgekrap ek is nie. Daarom praat ek nie baie nie. My gedagtes gaan baie ver terug. Ek dink terug aan dinge wat jare gelede gebeur het. Ek lê in die nag wakker en dink hoe ek musiek gemaak het. Ek dink ver terug en vra my af: “Gaan die Here my altyd van Hom af wegstoot? Sal Hy ooit weer vir my goed wees? Gaan Hy sy troue liefde altyd van my af wegvat? Het sy belofte om sy kinders in hulle swaarkry te help, nou eens en vir altyd tot ’n einde gekom? Het God dan vergeet om weer goed aan ons te doen? Is hy so kwaad dat Hy Hom nooit weer oor ons gaan ontferm en ons jammer kry nie? En ek dink: My grootste bekommernis in die lewe is dat die Allerhoogste nie weer soos voorheen goed aan ons gaan doen nie! Toe het ek ver teruggedink, na dit wat God lank terug gedoen het. Vroeër het die Here buitengewone, wonderlike dinge gedoen. My gedagtes het stilgestaan by al u groot werke. Ek kon nie ophou nadink oor alles wat die Here gedoen het nie. God, U is heeltemal anders as ons. Daar is niemand wat sterker is as U nie! Wie is so groot soos U? U het wonderlike dinge in die verlede gedoen. Vir vreemde volke het U gewys hoe sterk U is. U het die Israeliete met u groot krag uit hulle moeilikheid gered. Almal wat u kinders in die moeilikheid probeer bring het, bewe, want hulle het u krag leer ken, Here. God, hulle weet dat U die sterkste is. Soos swaar reën en weerligte wat helder blits, het U u groot krag gewys. Almal was baie bang. Die hele aarde het gebewe. U het die donderweer laat slaan. Dit was soos ’n leeu wat aanhou brul. Die weerligstrale het die wêreld helder verlig. Alles het geskud. U krag het groot respek afgedwing. Deur al die gevaar het U u kinders veilig beskerm. Deur die grootste krisis het U hulle gelei. U het dit op u eie manier gedoen. En niemand kon uitvind hoe U dit doen nie. Here, U het u kinders gelei soos ’n herder sy skape lei. U het dit gedoen deur hulle leiers wat U gedien het. Moses en Aäron het vir hulle die regte pad gewys. My vriende, luister nou baie mooi wat ek vir julle wil sê. Ek gaan julle leer. Maak julle ore oop sodat julle goed kan hoor! Ek wil ’n belangrike verhaal aan julle vertel, iets wat lank terug gebeur het en ’n mens nou nog laat wonder. Dis ’n verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken. Daarom vertel ons dit vir die jong geslag, sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het. Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het. Hy het vir Jakob gesê hoe om te leef en aan Israel sy wet gegee. Die Here het ons oupas en oumas beveel om dit alles vir hulle kinders te vertel. Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem. Niemand mag ooit vergeet wat God gedoen het nie. So sal hulle leer om ook op God te vertrou. Hulle sal doen wat Hy sê. Mag die Here gee dat die jong geslag nooit soos hulle oupas en oumas sal maak nie. Dié het mos die rug vir die Here gedraai, ’n regte spul hardekoppe; daarom het hulle geweier om te doen wat Hy sê. Hulle was ontrou aan God. Ons verhaal begin by die Efraimiete: ’n klomp soldate wat baie goed kon veg. Maar toe die oorlog begin, het hulle weggehardloop. Want hulle het nie na God geluister nie. Hulle het nie die voorwaardes van sy ooreenkoms gehoorsaam nie. Hulle het gou vergeet watter groot dade God voor hulle oë gedoen het. Die Here het groot wonders voor hulle ouers se oë laat gebeur daar in Egipte, in die veld van Soan. Die Here het die see voor hulle laat oopgaan sodat hulle daardeur kon stap. Hy het die water daardie dag soos ’n muur laat opdam. Bedags het Hy ’n wolk gestuur om hulle te lei. En snags was daar ’n bol vuur in die lug om hulle op die regte pad te hou. Daar in die woestyn het God rotse oopgebreek en hulle dors weggevat deur vir hulle strome water uit die rots te gee om te drink. Strome, nee, riviere vol water het uit die rotse geloop. Nogtans het hulle aangehou om verkeerde dinge te doen. Daar in die woestyn het hulle geweier om na die Allerhoogste te luister. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het God baie kwaad gemaak, want hulle wou allerhande luukshede by Hom hê; net die beste kos was vir hulle genoeg. Soos bedorwe kinders het hulle gesê: “Hoekom dek God nie vir ons ’n feesmaal hier in die woestyn nie? Hy kan mos ’n rots slaan dat jy net water sien spuit. Riviere kom mos uit rotse. Vir wat hou Hy dan nie ’n groot feesmaal vir sy volk met lekker brood en skottels vol vleis nie?” Die Here was baie kwaad toe Hy hoor wat hulle sê. Sy woede het soos ’n vuur op Jakob afgekom, soos ’n orkaan op Israel, want hulle wou nie in God glo nie. Hulle het nie op sy hulp staatgemaak nie. Gelukkig is God ’n goeie God; daarom het Hy sy volk gehelp. Hy het vir die wolke gesê: “Gaan oop!” Hy het die deure van die hemel oopgemaak. Hy het arms vol kos op hulle laat neerreën uit die hemel: manna, hemelse brood! Skielik het gewone mense dieselfde kos as engele in die hemel geëet. Elke dag was daar oorgenoeg kos vir almal. God het dit gestuur. Hy het ook die oostewind laat opkom en met die suidewind gepraat, toe val daar skielik voëls soos stof uit die lug op hulle af, ’n oorvloed vleis, so baie soos die sand van die see. Boonop het God hierdie voëls bo-op die volk se staanplek laat val, sommer tussen hulle tente. Die mense kon hulle honger heerlik stil. Daar was meer as genoeg vir elkeen. Hulle kon meer as genoeg eet. Maar hulle was nog nie tevrede nie. Hulle was gulsig. Hulle wou nog meer hê, selfs met hulle mond propvol kos! Toe het God kwaad geword vir hulle, Hy het die sterkstes onder hulle laat doodgaan. Al die jongmans van Israel het omgekom. Die volk het aangehou om verkeerde dinge te doen. Hulle het hulle net mooi niks aan God se wonders gesteur nie. Daarom dat God hulle lewe in die sand laat wegsyfer het. Hulle het vergaan. Elke keer as God hulle gestraf het, het hulle gou om genade kom smeek. Hulle het Hom gesoek en na Hom toe gedraai. Dan was hulle vinnig om te sê: “Ons kom kruip weg by God; die Allerhoogste is ons Redder.” Hulle het mooi woorde vir God gesê, maar niks daarmee bedoel nie. Hulle het kliphard gelieg! Hulle hart was ver van Hom af, hulle woorde en dade ook! Hulle het nie hulle ooreenkoms met Hom gehou nie. Gelukkig kry God mense jammer, Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie. Keer op keer vat God die straf weg wat Hy op mense wil loslaat, Hy hou gou op om vir mense kwaad te wees. God het onthou dat sy volk doodgewone mense is. Hulle is soos ’n wind wat ’n rukkie waai en dan verdwyn. Baiekeer het Israel in die woestyn gemaak of hulle God glad nie ken nie. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het Hom kwaad gemaak. Hulle het Hom hartseer gemaak. Oor en oor het hulle God se geduld beproef. Hulle het Israel se heilige God in die gesig gevat! Hulle het gou-gou vergeet dat Hy hulle gered het toe hulle vyande hulle wou doodmaak, en watter wonders Hy in Egipte gedoen het, daar in die veld van Soan. Hy het riviere in bloed verander, g’n mens kon daarvan drink nie. Hy het steekvlieë gestuur om die mense uitmekaar te steek. Hy het paddas gestuur om alles te verwoes. Hy het sprinkane die Egiptenaars se oeste laat opvreet. Hy het hael al hulle wingerde laat stukkend slaan, kwaai ryp het hulle vrugtebome laat doodgaan. Hy het hael op hulle diere laat neerreën en swaar donderweer op hulle vee. God se woede het Egipte hard getref. Sy woede het soos ’n vuur gebrand, ’n wavrag vol onheil het Hy op hulle losgelaat. Hy was woedend vir hulle. Boodskappers van die dood het hulle getref. Pes en siekte was hulle voorland. Al die oudste seuns in die huise in Egipte het Hy doodgemaak, al die oudste kinders wat van Gam afstam. Maar die Here het sy eie volk laat wegtrek. Soos ’n goeie skaapwagter het Hy hulle deur die woestyn gelei. Hy het sy volk goed opgepas sodat hulle nie bang was nie. Al hulle vyande het in die see verdrink. Hy het sy volk na die land toe gebring wat Hy vir hulle uitgesoek het, na die bergland wat die Here self gekies het. Hy het self hierdie gebied vir hulle verower. Ander volke het Hy voor hulle weggejaag, sodat hulle die land gekry het wat God vir hulle gekies het. Daar het al die stamme van Israel ’n blyplek gekry, waar die ander nasies eens gebly het. Maar die Israeliete het geweier om na God te luister. Hulle het teen Hom gerebelleer. Hulle het die Allerhoogste se voorskrifte die een na die ander verwerp. Hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie, presies soos hulle ouers. Die hele spul was totaal onbetroubaar! Hulle het God se geduld getoets deur tot ander gode te bid en Hom kwaad gemaak toe hulle voor beelde wat uitgekerf is, gebuig het. Toe God sien wat aangaan, het Hy baie kwaad geword. Net daar het Hy sy rug vir Israel gedraai. Die tabernakel in Silo waar die volk gebid het, het Hy verwerp. Vroeër het Hy hier gebly. God het sy volk oorgegee in die hand van hulle vyande, want hulle het sy groot Naam vertrap. Hy het hulle uit die land weggejaag. Hy het toegelaat dat ander mense sy volk doodmaak, met sy eiendom wou Hy niks te doen hê nie. Jongmans het in die vuur doodgebrand. Later was daar niemand meer oor om met die meisies te trou nie. Selfs die priesters is in die oorlog doodgemaak. Hulle weduwees het nie eens ’n kans gehad om oor hulle te huil nie. Toe, skielik, het die Here weer op die toneel verskyn! Dit was of Hy uit ’n diep slaap wakker geword het soos iemand wat in ’n roes was na hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande met ’n ystervuis getref, hulle onderstebo geloop. So erg het hulle nog nooit verloor nie. Die Here het nie die stam van Josef as leier gekies nie, ook nie die stam van Efraim nie. Sy keuse het op Juda geval. Die Sionsberg waarvoor Hy so lief is, was sy keuse. Daar het God sy heilige plek gebou. Dit het bo alles uitgetroon, vas en stewig. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom tussen die skape gaan uithaal. Die Here het hom gaan haal daar tussen die jong skape om sy volk Jakob op te pas en sy hand oor Israel te hou. Dawid was ’n goeie herder. Hy het hulle goed gelei en met liefde versorg. God, ongelowiges het dit wat aan U behoort, verwoes. Wat vir U en u kinders kosbaar is, u blyplek, het hulle sonder enige eerbied platgeloop. Vreemdes het Jerusalem in ’n ashoop verander. Hulle het u kinders doodgemaak en net so laat lê. Die voëls en roofdiere het hulle kom opvreet. U kinders is by die hope doodgemaak sonder dat hulle begrawe is. Die mense wat U dien se bloed het in strome rondom Jerusalem gevloei. Daar was niemand wat die lyke kon begrawe nie. Almal wat om ons bly, het hierdie vernedering gesien. Hulle het ons gespot. Hulle jou ons uit. Hoe lank gaan U nog u woede op ons laat afkom, Here? Gaan dit altyd aanhou? Dit bring baie pyn. Dit brand soos ’n vuur wat niemand kan doodkry nie. Wees eerder kwaad vir hulle wat U nie ken nie. Tref eerder die nasies wat nie na U kom nie. Hulle het u kinders kom doodmaak en die plek waar ons bly met die grond gelykgemaak. Moet ons nie straf vir die verkeerde dinge wat ons oupas en oumas gedoen het nie! Maak gou en kom vou ons toe met u liefde, want ons krag is op. Ons is baie swak. Help ons tog, God! Dit is net U wat ons kan verlos. U goeie Naam is ook op die spel. Vat al ons sondes weg sodat u goeie Naam nie gespot word nie. Want die mense wat U nie dien nie, spot met ons. Hulle sê: “Waar is daardie mense se God dan?” Straf daardie spul wat u kinders doodgemaak het. Betaal hulle in eie munt terug terwyl ons toekyk. Luister tog na al die klagtes van u kinders wat oorgebly het. Hulle is nou gevangenes. Red hulle met u groot krag sodat hulle kan leef. Maar betaal daardie mense terug wat met U gespot het. Betaal hulle dubbel en dwars terug daarvoor. Ons is u kinders, Here. Ons is soos skape en U is ons herder. U sorg vir ons. Ons sal U altyd prys. Ons en ons kinders sal U loof. *** Here, U is soos ’n herder vir u kinders. U sorg vir al u kinders soos ’n herder sy skape oppas. U lei u kinders. Oor alles in die wêreld heers U. Luister tog nou na ons! Gryp nou in. Help ons uit ons probleme uit. Wys vir u kinders hoe sterk U regtig is. Kom help ons! Laat dit weer met ons goed gaan. Red ons, God! Here, groot God, U is die groot Bevelvoerder oor alles en almal. Hoe lank gaan U nog kwaad bly? U doen niks as u kinders by U hulp vra nie. U het ons baie swaar laat kry. Ons het ons oë uitgehuil oor die swaarkry wat U oor ons laat kom het. Ons is soos ’n bal wat rondgeskop word deur almal rondom ons. Mense baklei met ons. Daardie spul wat niks van ons hou nie, lag ons uit. Almagtige God, U is die groot Bevelvoerder. Sit ons tog weer op die wenpad. Help ons! Laat dit weer met ons goed gaan. Die Israeliete was soos ’n wingerdplantjie. U het hulle in Egipte uit die grond getrek. U het al die vreemdes weggejaag van die plek af waar U hulle wou kom oorplant. U het die grond uitgekies en goed voorberei. Die plantjie het stewig begin groei. Gou-gou was die hele land toegerank. So dig het dit gegroei dat dit skaduwees oor die hoë berge gegooi het. Dit was selfs groter as die reusebome wat daar gestaan het. U nuwe plant het van die Middellandse See tot by die Eufraatrivier gestrek. Die Here se kinders het die Beloofde Land volgemaak. Maar hoekom het U die veiligheidsmuur rondom u volk laat afbreek? Almal wat daar verbyloop, het nou die druiwe afgesteel. Die diewe en skurke het alles kom opvreet. Wilde diere het alles wat oorgebly het, kaalgepluk. God, U is die groot Bevelvoerder. Kom help ons! Sorg uit u hemelse blyplek vir ons. Ons is u wingerdplant. Kry ons weer jammer, en sorg weer vir ons! Beskerm die plant wat U met soveel sorg vertroetel het. U het dit met spesiale aandag grootgemaak. U wingerdplant is aan die brand gesteek. Dis uitgekap. Hulle het dit soos onkruid uitgeroei. Laat hulle nou te gronde gaan. Sorg nou asseblief weer vir die mense wat U gekies het om aan U te behoort. U het hulle almal as u eie kinders grootgemaak. As U dit doen, sal ons U dien. Ons sal nie weer van u wegdraai nie. Help ons om weer voluit te lewe! Dan sal ons U prys en dien. Here, U is die God wat die groot Bevelvoerder is. Sit ons weer op die wenpad. Help ons! Kom tog om ons te red! *** Sing mooi liedere om God groot te maak, want Hy gee ons krag. Wees bly terwyl julle die God van Jakob grootmaak. Sing en speel op die musiekinstrumente. Maak lieflike klanke met julle musiekinstrumente. Maak mooi musiek op die spesiale feesdae, op die nuwemaan en volmaan. God hou baie daarvan en wil dit so hê. Hy het so bepaal. Hy het gesê sy kinders moet dit doen toe Hy hulle in Egipte kom help het. In Egipte het ek ’n onbekende taal gehoor: “Ek haal die swaar vrag van julle skouers af. Julle kan maar ophou met die harde werk. Toe julle hulp nodig gehad het, het julle My gevra en Ek het gehelp. Uit die donderweer het julle My gehoor, by Meriba het Ek gekyk of julle regtig op My vertrou. My kinders, luister asseblief na My. Hoor wat Ek sê. Ek gee julle ’n opdrag: ‘Moet nooit ander gode aanbid nie. Moenie voor vreemde gode neerbuig nie. Ek is mos julle Here, julle God! Dit is Ek wat julle daar in Egipte gehelp het. Ek sal goed vir julle sorg. Wat julle nodig het, gee Ek vir julle.’ “Maar nee, my kinders wou nie luister nie. Hulle het mos beter geweet en die rug vir My gedraai. Ek het hulle toe gelos sodat hulle hulle eie pad kon loop. Ek het hulle ’n kans gegee om hulle sin te kry. Ag, as my kinders maar net na My wou luister en doen wat Ek vra! In ’n oogwink sou Ek hulle vyande straf. Na een veeg van my hand sou daar niks van hierdie vyande oorbly nie.” Mense wat nie van God hou nie, maar maak of hulle Hom liefhet, gaan baie spyt wees. Hulle sal in vernedering voor God moet kom kruip. God sal hulle vir altyd laat betaal. Met God se kinders sal dit anders wees. Vir julle sal Hy die heel beste gee, die lekkerste kos wat jy jou kan voorstel. In die hemelse hof sit God as regter gereed. Hy lewer uitspraak oor alles in die hemel en op die aarde. “Hoe lank gaan julle onregverdig wees en maak of die slegte mense nie regtig so sleg is nie? Hoe lank gaan julle nog die reg verdraai? Julle moet eerder die mense help wat hulleself nie kan help nie. Kom op vir die weeskind. Sorg liewer dat dit beter gaan met mense wat swak is en niks het nie. Help die mense wat nood het en wat arm is teen die slegte mense wat geen gewete het nie. Hoe dom is julle nie, so sonder verstand. Julle verstaan nog niks. Julle het die pad skoon byster geraak. So het julle alles in die wêreld deurmekaargekrap. Ek het wel gesê: Julle kan baie spesiale dinge doen, soos gode. Julle is seuns van die Allerhoogste. God, wat die belangrikste van die belangrikstes is, het julle gemaak. Julle is vir Hom soos kinders. Maar julle pad gaan gou eindig; julle gaan sterf!” Kom, o God, heers oor die wêreld. Wys wat reg en verkeerd is. Al die mense in die wêreld behoort mos aan U. *** God, hou op om my te ignoreer; U wil niks met my te doen hê nie. Moenie maak of U my nie hoor en dan niks doen nie. Kyk net hoe gaan die ongelowiges te kere. Hulle wat niks van U dink nie, dink baie van hulleself. En hulle verset hulle teen U. Hulle praat agteraf oor u kinders. Hulle maak planne teen mense vir wie U beskerm. Hulle sê: “Kom ons gaan maak daardie klomp dood. Dan kan hulle nie meer die Here se kinders wees nie. Niemand sal dan meer oor God se kinders praat of van hulle onthou nie.” Hulle het saam besluit om teen U te veg. Hulle het ’n ooreenkoms teen u gemaak. [7-9] Hulle kom van oral af: kleintjies en grotes, swakkes en sterkes, onbekendes en mense uit bekende families. Al die volke wat U nie dien nie, span saam teen U. *** *** Maak met hulle soos met daardie mense wat lank terug u kinders wou doodmaak. [11-12] Daar is so baie voorbeelde van mense wat teen U in opstand was: Sisera, Jabin, Oreb en nog baie ander. U het hulle ’n skandelike dood laat sterf. *** Hulle het gesê: “Kom ons vat hulle kosbare blyplek. Dit behoort mos aan God.” My God, laat hulle soos droë gras in die wind wegwaai. Maak hulle soos ’n bos of ’n berg wat deur ’n veldbrand verwoes word. Laat ’n stormwind, ’n orkaan hulle uitmekaarruk en wegwaai. Tref hulle baie hard! Hulle moet baie bang word. Laat hulle in die skande kom. Dan sal hulle agterkom wie U regtig is. Maak hulle skaam oor wat hulle aanvang! Laat hulle lewe een groot verskrikking wees. En wis hulle van die aarde af. Laat hulle besef hoe groot en sterk U regtig is. Verander hulle lewe in een groot nagmerrie. Hulle moet weet dat U alleen God is, niemand anders nie. U Naam is Here. U regeer oor die hele aarde. *** Hoe wonderlik mooi is die plek waar U woon, o Here, groot Bevelvoerder oor alles en almal. Ek verlang so om net in u woonplek te staan. Ek wil baie bly wees omdat U die God is wat leef. Die voëltjies maak hulle nes naby u altaar, o Here, God, groot Bevelvoerder. U is my God, en U heers oor die heelal. Gelukkig is die mense wat tuis voel in u huis en nie ophou om die mooiste dinge oor U te sê nie. Gelukkig is mense wat hulle krag by U soek en wat heeltyd droom oor hoe hulle u huis gaan besoek. As hulle deur ’n droë vallei gaan, breek die aarde in fonteine oop en sak die vroeë reën uit sodat daar oral poele water staan. Aan hulle is daar geen keer nie; hulle pad sal by God in Jerusalem eindig. U gee hulle die krag daarvoor. Luister asseblief wat ek vra, o Here, U wat alles kan doen. U is die groot Bevelvoerder, die God van Jakob. Hoor my gebed. Pas ons aardse heerser asseblief mooi op, o God. Wees goed vir die een wat U spesiaal as koning gekies het. Hy moet ons beskerm. Dit is vir my lekkerder om een dag in u huis te wees as duisend dae sonder U in die poele van plesier. Ek sal liewer net ’n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie. Die Here God wys vir ons wat ons moet doen en beskerm ons in gevaar. Hy gee vir ons dinge wat ons nie verdien nie omdat ons reg lewe. As ons op U vertrou, sal U vir ons gee wat ons nodig het. Here, U is die groot Bevelvoerder wat alles kan doen. Die mens wat op U vertrou, is die gelukkigste van almal. *** U het u kinders baie lief, Here. U seën hulle land. Daarom het U hulle slegte omstandighede weggevat. Hulle lewe het weer nuut begin. Al die dinge wat hulle in die verlede verkeerd gedoen het, tel glad nie by U nie. U het al hulle sondes vergewe asof hulle dit nooit gedoen het nie. U is nie meer kwaad nie. U gaan hulle nie straf nie. God, verander tog ons omstandighede. Kry ons weer jammer. U is die Een wat ons vrymaak. Moenie meer vir ons kwaad wees nie. U kan mos nie altyd vir ons kwaad bly en oor geslagte heen woedend wees nie. Help ons om weer nuut te begin lewe sodat u kinders vrolik en bly kan wees. Laat ons u groot liefde beleef. Bevry ons tog. Dit is ’n baie ernstige saak as God, die Here, praat. Wat Hy sê, bring vrede vir die mense wat dit doen. Maar daar is ’n voorwaarde: hulle moet net nie weer verkeerde dinge aanvang nie. Die Here maak mense vry wat Hom dien. Hy help hulle wat Hom aanbid, en gou ook. Hy red hulle. Almal hier rondom ons sal dit sien. ’n Paar dinge hoort bymekaar: troue liefde en gehoorsaamheid aan God kan nooit van mekaar losgemaak word nie. Om dinge te doen soos die Here wil hê, en om sy vrede te ken hoort ook saam. Mense moet getrou wees. Dan sorg die Here van sy kant af uit die hemel dat dinge reg loop. Dit is net soos met ’n goeie oes: die Here gee goeie reën op die vrugbare grond wat goed bewerk is. Dan lewer die land ’n groot oes. Die goeie dinge wat die Here doen, loop voor Hom uit. Die reg wat Hy doen, is sy voetstappe. Here, luister tog as ek bid. Help my, want ek is in ’n krisis. Beskerm my, want ek is in die nood. Ek is desperaat. My God, U help mos u kind wat U dien en op U vertrou. Red my, want ek het U as my God gekies. Wys tog dat U vir my omgee, Here. Ek bid heeldag tot U sonder om op te hou. Maak my weer bly, want my hele lewe draai om U, Here. Ek dien U. En ek wens heeldag dat U by my is. Here, U is goed vir al u kinders wat tot U bid. U vergewe maklik. U het u kinders baie lief. As hulle na U roep om hulle te help, antwoord U gou. Here, help my as ek bid. Luister as ek om hulp smeek. Ek weet as ek die dag in ’n groot krisis is, kan ek maar net tot U bid, want U antwoord my. Here, U is die enigste ware God. Niemand kan die dinge doen wat U doen nie. Selfs mense wat U nie dien nie, is u handewerk. Ook hulle sal nog kom om U te aanbid, Here. Hulle sal u Naam kom grootmaak en U eer. Ja, U is baie groot. U laat wonders gebeur. U is die enigste ware God. Help my om te doen wat U wil hê, Here. Ek sal doen wat U van my vra. Maak my gehoorsaam sodat ek u Naam kan eer en U dien. Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U Naam wil ek altyd grootmaak. Ja, U het my baie lief. U het my uit my grootste krisis gered. U het my van die dood af weggehou. Slegte mense het my lewe bedreig. ’n Klomp wrede skurke wou my doodmaak. Hulle maak asof U nie bestaan nie. Here, U het ’n sagte hart. U gee maklik goeie dinge aan ons. En U het baie geduld met ons. U is vol goedheid. U het almal baie lief wat aan U behoort. En U is getrou aan hulle. Help my, Here! Maak u hart vir my oop. Gee my krag. Red my. Ek dien U mos. Ek is deel van ’n familie wat U dien. Mense moet aan my lewe kan sien dat U regtig vir u kinders omgee. As mense wat my haat, sien hoe U my help, sal hulle baie skaam word. Hulle moet sien hoe U al my trane afdroog en my help. Jerusalem, die stad van God, staan op die heilige berg. Die Here het Jerusalem baie lief; liewer as enige ander plek. Die mense praat met groot lof van jou, o stad van God. Die hele wêreld weet van jou: Egipte, Babel, Filistea, Tirus, tot doer ver in Etiopië. Hulle sal van Jerusalem sê: “Daar is ons geboorteplek. Ons behoort nou aan die stad.” Hulle sê van Sion: “Daar is ons almal gebore. God, vir wie niks onmoontlik is nie, sorg self vir hierdie stad. As die Here deur die lys volke gaan, sal Hy sê: “Hierdie en daardie een is kinders van Jerusalem.” As hulle dans en sing, sal hulle bly uitroep: “My lewe begin en eindig in jou, o Jerusalem.” *** Here, U is die God wat my help. Elke dag vra ek ernstig dat U my moet help. Ook in die nag hou ek nooit op met bid nie. Wys asseblief dat U my gebed hoor! Ek bid nie tevergeefs nie. Luister na my as ek om hulp smeek! Ek is siek en sat daarvan om swaar te kry. Dis net te veel vir my. Die dood lê en loer vir my. Ek is nie meer ver van doodgaan af nie. Mense dink dat ek klaar dood is. Ek het nie meer krag oor nie. Ek voel soos ’n dooie, soos iemand wat in die oorlog vir dood laat lê is. Dit lyk of U niks meer vir so iemand omgee nie. Dit lyk of U u hand teruggetrek het. U het my in hartseer en ellende gedompel. Dit voel of ek in ’n diep donker put lê. U is kwaad vir my. As ek wil opstaan, slaan U my plat soos ’n brander wat jou van jou voete afvee. U maak dat hulle wat vir my lief is, nie naby my wil kom nie; hulle vermy my asof ek ’n verskriklike siekte het. Ek kan nie opstaan nie. Ek kan nie wegvlug nie. Ek voel so vasgekeer soos iemand wat in die tronk toegesluit is; ek kan niks doen nie. Ek sien geen uitkomkans nie. Ek het geen hoop meer nie, my probleme is te groot. Here, ek bid dwarsdeur die dag baie ernstig tot U. Ek vra baie mooi dat U my moet help. U kan tog nie met mense wat klaar dood is wonderwerke doen nie! U kan nie dooies weer lewendig maak sodat hulle U kan prys nie! Dooie mense kan nie van die goeie dinge vertel wat U gedoen het nie. Mense wat in die graf lê, ervaar tog nie dat U hulle liefhet nie. Tussen die dooies weet niemand meer dat U wonders doen nie. Dit is of hulle alles vergeet. U red hulle nie daar nie. Maar Here, ek bid ernstig dat U my moet help. Ek begin al vroeg in die môre bid. Here, waarom stoot U my weg? Waarom help U my nie? Waarom kyk U weg? Van jongs af kry ek al swaar. U maak my aanhoudend bang. Ek weet nie meer wat om te doen nie. U het met u woede op my afgekom. Dit maak my baie bang. U vernietig my lewe. Dit voel of my kop onder die water gedruk word. My moeilikheid omsingel my. U laat almal wat vir my omgee, die rug vir my keer. Hulle gaan staan ver weg van my. My enigste geselskap is die donker skaduwees van die dood. *** Ek sal altyd liedere sing oor die Here wat so goed is vir my omdat Hy my liefhet. Ek sal vir almal wil vertel dat ’n mens U altyd kan vertrou. Ek sê: “U liefdevolle goedheid sal daar wees so lank as wat daar ’n son en wolke en ’n hemel is, en langer.” U het gesê: “Ek het ’n ooreenkoms met Dawid gemaak. Ek het hom gekies en hy dien My. Ek het beloof dat hy en sy nageslag vir altyd daar sal wees, met ’n nakomeling van hom op die troon.” Die hemelwesens sing oor u krag om wonders te doen. Ja, ’n mens kan U regtig vertrou. Daar is niks en niemand wat soos U is nie, nie eens in die hemel nie. Hulle kom nie eens naby U nie. Almal rondom U, ook in die hemel, het ’n heilige ontsag vir U. O God, U is die sterkste van die sterkstes. Almal is bang vir U. Wie is naastenby so sterk soos U, Here, groot Bevelvoerder? ’n Mens kan U altyd vertrou. Want U is baie sterk. U is in beheer van die see met sy onstuimige golwe. U laat hulle bedaar. Alle vyande, groot en klein, het voor u mag geswig. U verslaan selfs die magtige seemonsters. U het as wenner uit die stryd getree. U het alles gemaak. Dit is U s’n. Alles, van die noorde tot die suide, het U gemaak. Alles behoort aan U. Die hoogste berge het U gevorm, daar kan ’n mens sien hoe groot U regtig is. U is ongelooflik sterk; u mag is onberekenbaar. Waar U regeer, gebeur daar niks verkeerds nie. U is goed vir mense omdat U hulle liefhet. Hulle kan U vertrou. Die mense is gelukkig wat liedere vir U kan sing, wat in u teenwoordigheid mag leef. Hulle juig die hele dag lank en praat oor baie dinge wat U doen. U red hulle, en U tree reg op. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie. Omdat U ons liefhet, is ons wenners. Daarom is ons sterk. Die Here stel die koning aan om ons te beskerm. Hy behoort aan U. In ’n visioen het U vir u profeet oor hom gesê: “Ek het ’n held gehelp. En Ek eer hom. Dit is Dawid. Ek het hom gekies om koning te word, en hy dien My. Ek sal hom sterk maak en sterk hou. Sy vyande sal hom nie kan seermaak nie, en slegte mense sal hom nie kan uitoorlê nie. Ek sal daarvoor sorg, Ek sal sy vyande vermorsel. Dié wat hom haat, sal Ek self straf. Ek sal hom nie in die steek laat nie. Ek sal goed wees vir hom. Ek sal hom help om ’n ware wenner te wees. Sy mag sal uitbrei oor groot gebiede. Hy sal van My praat as sy Vader, sy God en die Een wat hom red en beskerm. Ek sal hom die koning oor al die konings maak. Ek sal hom eerste stel. Ek sal getrou bly aan hom en aan my ooreenkoms met hom dat Ek sy God sal wees. Sy kinders se kinders sal altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon so lank as wat die hemel bestaan. [31-32] “As sy kinders egter nie doen wat Ek en my wet wil hê nie, *** sal Ek hulle straf. As hulle nie alles doen wat Ek vir hulle sê nie, sal Ek hulle laat swaarkry vir alles wat hulle verkeerd doen. Ek sal hulle baie seer slaan daarvoor. Maar dan sal Ek nie vir Dawid minder lief wees nie. Ek sal steeds getrou bly aan Hom. Ek sal ook nie my ooreenkoms met hom verbreek nie. Ek sal al my beloftes nakom. Ek het gesê Ek sal sy God wees, en dit sal Ek bly. Ek sal nie van plan verander nie. Sy kinders se kinders sal vir altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon. So sal dit wees, so lank as wat daar ’n son in die hemel is.” Maar U het tog kwaad geword vir die een wat U as koning aangestel het. U het hom nou alleen gelaat. U het u ooreenkoms met u dienaar opgehef en sy kroon in die stof laat val. Van sy huis en vestings is niks meer oor nie, net ’n hoop rommel. Hy word besteel deur elke Jan Rap en sy maat wat daar verbykom. Die mense rondom hom lag hom uit. Sy vyande het gewen. Hulle het van blydskap geskreeu. Hy kon nie meer ’n geveg wen nie. Sy wapens het ook nie meer gehelp nie. Hy het ’n niks geword. Sy koningskap en regering was daarmee heen. Sy troon is vernietig. Hy het voor sy tyd oud geword. Hy moes deur die lewe gaan met sy kop in skaamte gesak. Hoe lank sal U nog kwaad bly, o Here? Hoe lank nog sal U niks met hom te doen wil hê nie? Onthou, die lewe van die mense wat U gemaak het, is maar kort. Ons is almal mense wat doodgaan. Wie sal die dood kan vryspring? Wie kan homself van die dood red? Here, waar is u goedheid en liefde heen? U het tog beloof dat U altyd vir Dawid lief sal bly en goed vir hom sal wees. Here, dink asseblief aan die mense wat U dien. Kyk hoe sleg gaan dit met hulle en hoe skaam kry hulle voor die ander mense. Daardie mense wat ons so spot en skaam laat kry, is u vyande. Hulle spot die koning wat U self aangestel het. Loof die Here vir ewig en altyd. Hy verdien dit. So is dit en so sal dit bly. Here, in die verlede het U ons en ons ouers beskerm. So was dit nog altyd. Nog voordat die berge daar was en voordat U die wêreld gemaak het, ja, van altyd en altyd af is U die ware God. U laat toe dat die mens doodgaan. U sê: “Mens, word weer stof waaruit jy gemaak is.” En so keer die mens terug na die grond toe waaruit U hom gemaak het. Die mens se lewe gaan baie gou verby. In die Here se oë word tyd nie met ’n horlosie gemeet of volgens die almanak bepaal nie, want 1 000 jaar is vir U presies dieselfde as een dag. Die lewe is kort. U vat die lewe terug. Dit gaan so vinnig verby soos een dag se werk vinnig agter die rug is. Die een jaar na die ander laat U soos water wegspoel. Dit gaan so gou verby soos tyd as ’n mens slaap. Die lewe is soos gras. In die môre sien jy nuwe grassies opkom; dit is groen en vol lewe, maar teen die aand se kant het dit uitgedroog. Dan moet jy dit afsny. U woede bring ’n vinnige einde aan ons lewe. Ons is baie bang vir u woede, want U weet van al ons slegte dade. Selfs die verkeerde dinge wat ons vir U probeer wegsteek, is oop en bloot voor U. Elke dag van ons lewe gaan vinnig verby as U vir ons kwaad is. Die lewe skiet so vinnig soos ’n gedagte by ons verby. Die meeste van ons word maar so 70 jaar oud. Mense wat sterker is, kan dalk nog 80 haal. Maar die lewe loop hand aan hand met swaarkry en hartseer. En dit gaan so bitter gou verby. Die dood kom nog vinniger as wat ons dink. Here, ons het ervaar hoe kwaad U vir ons kan word. Wie weet beter as ons hoe groot U woede is. Ons dien U nie soos U regtig verdien nie. Ons skiet ver te kort. Daarom vra ons: Help ons om U te dien en om gelukkig te lewe. Maak ons slim sodat ons elke dag sal gebruik om reg te doen. Here, hoe lank gaan U nog kwaad bly? Wanneer kom help U ons? Omvou almal wat U dien met u liefde! Gee ons elke dag arms vol van u groot liefde! Dan sal ons vir die res van ons lewe juig en bly wees. Gee vir ons net soveel blydskap as die swaarkry wat ons gehad het. Laat almal wat U dien, raaksien wat U doen. Wys vir ons wat ’n vol en gelukkige lewe U gee, ook vir ons kinders. Ons bid dat die Here ons God vir ons baie goed sal wees. Maak al ons planne voorspoedig. Gee sukses op alles wat ons begin doen het. As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar. Jy kan vir die Here sê: “U beskerm en bewaar my. U is my God op wie ek vertrou.” Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou. Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig. Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip. Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af. Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie. Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie. Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie. Al is die gevaar rondom jou so groot dat duisende mense langs jou doodgaan, ja, ook al sterf derduisende mense naby jou, sal jy niks oorkom nie. Jy sal staan en kyk hoe mense wat nie op die Here vertrou nie, platgetrap word. Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip. Ongelukke, rampe en ernstige siektes sal jou of jou huis nie tref nie. Hy self sal jou bewaar. Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie. Jy sal nie eens jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie. Jy sal oor jou vyande loop. Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie. Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom. Jy sal bo dit alles uittroon. Die Here sê self: “Iemand wat My liefhet, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou. Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan. In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys. Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef. Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.” *** Allerhoogste Here, dit maak my baie bly om vir U ’n danklied te sing. Ek wil liedere sing om aan U eer te gee. Vroeg in die môre wil ek van u groot liefde vertel. In die aand wil ek uitjubel dat U altyd op u pos is. U slaap nooit nie. Ek wil dit uitsing met die geklank van viole, kitare, harpe en liere. Here, ek sal sing, want U het my lewe vol blydskap gemaak. Ek juig oor alles wat U gedoen het. Wat U gedoen het, is te groot vir ons klein verstandjies. Wat U dink en beplan, is te groot vir mense om te verstaan. As jy nie oor die Here se grootheid nadink nie, is jy dom; dan het jy geen verstand in jou kop nie. Ook al gaan dit baie goed met mense wat U nie dien nie, en al het mense wat lelike dinge doen sakke vol geld, hulle gaan die een of ander tyd onder. Maar Here, U is altyd baie groot. U sal altyd die Here wees, maak nie saak wat mense sê of doen nie. Al die slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. U gee vir my krag om op te staan. U maak my so sterk soos ’n jong buffel. Ek geniet al die goeie dinge waarmee U my oorlaai. Ek geniet dit as mense wat my probeer onderkry, my nie stukkend kan trap nie. Ek is nie bang vir hulle nie, al ondermyn hulle my omdat hulle teen my in opstand kom. Iemand wat die Here liefhet, staan so sterk soos ’n yslike groot boom. Soos bome in die Libanon se woud, so sterk staan hy. Mense wat die Here liefhet, kry krag daaruit om die Here te aanbid. Daarom is hulle gereeld op hulle knieë voor ons God. Selfs as hulle baie oud is, hou hulle aan om goeie dinge te doen. Hulle is dan nog sterk en vol lewe. Hulle sal vertel dat die Here ’n reguit pad met mense loop. Hy duld nie kwaad nie. Hy beskerm sy kinders. Ek kruip by Hom weg. Die Here regeer! Sy grootheid en krag is vir Hom soos sy klere. Kyk hoe vas staan die wêreld, ’n mens kan dit nie sommer rondstoot nie. Maar die Here wat oor alles heers, staan nog vaster, want Hy is van altyd af daar. Kyk na die see; dit druis en die golwe slaan, o Heer, maar wat is dit in vergelyking met U? Die Here is groter as die grootste golwe en magtigste gedruis. Sy krag oortref alles, net mooi alles! Niemand kan verander wat die Here wil hê nie. Dit staan vas. Die grootheid en andersheid van die Here oorweldig jou. Jy sien dit in sy woonplek. Dit is nou so, o Here, en dit sal altyd so wees. Here, U hou net mooi niks van verkeerde dinge nie. U straf dinge wat nie reg is in u oë nie. Wys tog Uself! God, laat almal tog sien U doen altyd die regte dinge. U is die aarde se Regter. Reken af met mense wat dink hulle is belangriker as U. Daar is mense wat glad nie hulle plek ken nie. Hulle dink hulle is belangriker as ander mense. Sorg dat hulle planne misluk. Hoe lank nog gaan mense wat weier om U te dien, daarmee loskom, Here? Hoe lank gaan hulle die lewe geniet? Hulle verkleineer ander en praat lelike dinge. Here, daardie slegte mense verneder u kinders. Hulle skend die regte van u kinders. Hulle gee niks om vir mense wat swaarkry nie. Hulle vermoor arme weduwees en wese en vlugtelinge sonder om twee keer te dink. Hulle sê: Die Here sal dit tog nie raaksien nie. Die God van daardie klomp gelowiges sal dit nie eens agterkom nie. Gebruik ’n slag julle kop. Party van julle het maar min insig. Julle is heeltemal sonder verstand. Wanneer gaan julle raaksien wat die Here wil hê? Die Here maak ore sodat mense daarmee kan hoor. Sal Hy dan self doof wees? Hy maak oë sodat mense kan sien. Sal Hy dan self blind wees? Die vraag is nou: Sal die Here, wat vir mense wys wat reg en verkeerd is, dan nie verkeerde dinge straf nie? Natuurlik! Hy sal dit beslis doen! Hy leer hulle dan wat reg en verkeerd is. Die Here weet baie goed wat mense dink. Hulle gedagtes beteken niks nie. Here, mense wat leer wat u wil is en dit doen, is baie gelukkig. U sal vir hulle uitkoms gee as teëspoed hulle getref het. Maar hulle wat weier om U te dien se dood kruip stadig nader. Die Here sal nooit die rug vir sy kinders draai nie. Mense wat aan Hom behoort, sal Hy nooit in die steek laat nie. Hy sorg dat daar ’n tyd kom dat mense weer reg sal optree. Almal wat eerlik is, sal baie bly wees daaroor. Hulle sal dan die regte dinge doen. Is daar iemand wat vir my kant sal kies teen ’n klomp kwaaddoeners? Wie sal my help teen mense wat altyd net verkeerde dinge teen my wil aanvang? As die Here my nie gehelp het nie, was dit klaarpraat met my. Dan was ek al dood! Wanneer my probleme my onderkry, het U my elke keer gehelp, Here. U sorg vir u kinders met u liefde! As ek bekommerd begin word, dan dink ek maar net daaraan dat U vir my sorg. Dan word ek weer rustig. U kan dit nie verdra as mense oneerlik is nie. U hou niks daarvan dat slegte mense hulle nie steur aan wat U sê en ander in die moeilikheid laat beland nie. Daardie spul skelms is lelik met mense wat U dien. Hulle beskuldig onskuldige mense links en regs. Hulle laat hulle doodmaak. Maar die Here pas my goed op. Hy is my God. Hy beskerm my en help my. Ja, die Here sorg dat daardie skurke se slegte dade misluk. Hy sal hulle laat boet. Hy vernietig hulle saam met die kwaad wat hulle doen. Die Here is ons God. Hy vat slegte mense vas! Die Here is ons God en ons is sy mense. Kom laat ons ons Here eer. Laat ons lofliedere uit volle bors sing, want Hy het ons gered. Laat ons na Hom toe gaan met al die dankies wat uit die diepte van ons hart kom. In ons mooiste liedere moet ons dit vir Hom sê. Want die Here is God; Hy is die sterkste van die sterkstes. Soos ’n onoorwinbare Heerser staan Hy in die pad van enigiemand wat sy plek wil vat. Gaan staan jy op die hoogste berg of in die diepste plek op aarde, dit is die Here s’n. Die see het Hy gemaak en soos ’n kunstenaar het Hy die aarde met sy hande gevorm. Kom ons buig voor God en erken Hom vir hoe groot Hy regtig is. Kom ons kniel nederig voor die Heer wat ook vir ons gemaak het. Want Hy is ons God en ons is sy mense. Hy beskerm ons soos ’n herder sy skape versorg en beskerm. Luister asseblief tog na Hom. Ag, luister tog vandag wat Hy vir julle wil sê: “Moenie soos die ou Israeliete in die woestyn maak wat destyds nie na My wou luister nie. Hulle het die goeie dinge gesien wat Ek vir hulle gedoen het, maar hulle nogtans nie daaraan gesteur nie. Hulle het probeer kanse waag en probeer kyk hoe ver hulle My kon dryf voor Ek my geduld verloor. En tog was hulle die mense wat gesien het wat Ek gedoen het. Daardie klomp mense wat so gemaak het, het My 40 jaar lank geïrriteer. Daarom het Ek gesê: ‘Soos stout kinders wou hulle eenvoudig nie luister nie. Hulle het geweier om te doen wat My gelukkig maak.’ Toe my geduld op was, het Ek vas besluit: ‘Nooit, ja nooit, sal hulle in rus en vrede saam met My kan wees nie.’” Kom ons sing vir die Here ’n nuwe lied wat spesiaal net vir Hom geskryf is. Laat almal op hierdie wêreld kom saamsing. Laat ons oor ons groot en wonderlike Here sing! Laat ons nooit ophou om te vertel hoe Hy ons uit ons nood gered het nie. Moenie stilbly nie. Vertel vir al die volke op aarde hoe sterk die Here is en wat Hy alles kan doen. Die Here is baie groot, en daarom moet ons Hom met ons mooiste woorde grootmaak. Hy is groter as enige ander god. Wat is die ander gode in vergelyking met Hom? Net mooi niks nie! Mense het hulle gemaak. Maar ons Here het die hemel gemaak waar mense dink daardie afgode is. As ’n mens by die Here is, word jy oorweldig; oorweldig deur hoe Hy oor alles heers, hoe belangrik Hy in vergelyking met enigiemand anders is, hoe sterk Hy is en hoe mooi alles by Hom is. Elke mens op hierdie aarde moet die Here erken vir wie Hy regtig is. Hulle moet erken dat Hy sterker en belangriker is as enigiemand anders. Gee daarom aan die Here die dank en eer wat net Hy verdien. Kom na Hom toe en bring vir Hom ’n offer wat Hom gelukkig sal maak. As Hy in sy grootheid aan jou verskyn, kniel en erken Hom vir wie Hy regtig is. Elke mens moet besef hoe klein hy is in vergelyking met die grootheid van ons Here. Vertel vir elkeen op hierdie aarde: “Die Here heers oor alles. Hy is so sterk dat die aarde onbeweeglik vas in sy hand lê. Soos ’n regverdige regter in die hof sal Hy besluit wat eendag van elke mens sal word.” Die hemel en elkeen wat daar is, moet van opgewondenheid oorloop. Die aarde en elkeen wat daar is, moet hulle blydskap uitskree. Ook die see met alles daarin mag nie stilbly nie. Oor die velde moet die jubeling weergalm en in die bome van die woud weerklink. Hierdie uitbundige jubeling is bedoel vir die Here, want Hy kom na ons toe. Ja, Hy kom om te sê wie sy mense is en wie nie. Soos ’n regverdige regter sal Hy sy besluit neem; oor elke mens sal Hy met billikheid sy uitspraak maak. Die Here regeer! Sy skepping moet oorloop van blydskap. Van hier tot in die laaste hoekie van die wêreld moet hierdie blydskap weerklink. Waar die Here is, is daar nie plek vir oneerlikheid nie. Wat Hy doen, is altyd reg en goed. Soos ’n vuur wat ’n veld tot as verbrand, vernietig Hy elkeen wat Hom probeer teëgaan. As sy weerlig slaan, staan die aarde in verwondering en vrees in die helder lig. As die Here, wat oor hierdie wêreld heers, verskyn, smelt berge weg soos botter in die warm son. Uit die hemel kom die boodskap dat wat die Here doen, reg is, en dat almal en alles sal sien hoe groot en belangrik Hy is. Die mense wat afgode aanbid, sal hulle kop in skaamte moet laat sak. Elkeen wat ’n afgod sy god maak, sal met ’n rooi gesig staan. Al hierdie gode sal voor die Here neerval, want Hy is die Here wat oor alles heers. Elkeen wat aan die Here behoort, juig uitbundig oor die goeie nuus dat U in hierdie wêreld laat gebeur wat reg is, o Here. Niemand is groter as U nie. Geen afgod kan u plek vat nie. As jy vir die Here lief is, hardloop dan weg van alles waarvan Hy nie hou nie. Hy sal jou oppas en beskerm teen enigiemand wat jou wil seermaak. As jy Hom gelukkig maak, sal sy geluk jou soos lig omvou. As jy aan Hom behoort, sal jou hart van vreugde oorloop. Laat God se kinders van geluk oorloop omdat hulle aan die Here behoort. Prys en dank die Here vir wie Hy is. Sing ’n nuwe lied wat spesiaal net vir die Here gemaak is. Vertel daarin hoe wonderlik Hy is. Hy het wonderlike dinge gedoen. Sy krag en Goddelike grootheid maak dat Hy altyd wen. Die Here steek sy oorwinning nie weg nie. Almal op aarde het gesien hoe Hy reg doen. Hy is lief vir Israel. En Hy was altyd getrou aan hulle. Almal op aarde het gesien hoe Hy hulle red en verlos. Sing uit volle bors psalms vir die Here, almal wat op hierdie aarde is. Loop oor van blydskap. Sing, speel musiekinstrumente; laat alles in een groot simfonie voor die Here opklink. Blaas op trompette en wees bly oor Hom, want hy is ons koning en oor Hom wil ons van uitbundigheid oorloop. Laat die see en alles daarin met sy gedruis die simfonie aanvul, terwyl die hele aarde in gejubel uitbreek. Laat die riviere kletter soos hande wat klap en laat die heuwels van blydskap weergalm. Laat alles en almal voor die Here sing. Hy gaan oor die wêreld heers, en wat Hy wil hê, gaan gebeur. Hy sal regverdig heers oor die wêreld en reg optree teenoor al die mense van hierdie wêreld. Die Here regeer! Laat elke mens dit weet en dan besef hoe klein hy voor God is. Die Here regeer oor almal bo in die hemel; op die aarde bewe almal voor Hom. Die Here is groot tussen sy mense, groter as die grootstes van hierdie wêreld. Laat almal U grootheid bewend prys: “U is heilig!” Here, U is sterk en heers oor alles; U doen net wat reg is. Die grense van wat billik is, het U getrek. Deur die geskiedenis het U gewys wat reg en verkeerd is. Maak die Here, ons God, groot bo alles. Buig laag voor sy voete. Hy is heilig! Mense wat die Here in die ou tyd gedien het, Moses, Aäron en Samuel, het Hom gevra om hulle te help. God het geluister en gehelp. Uit die wolkkolom het die stem van God gekom. Sy mense het geluister en gedoen wat Hy vra. O Here, ons God, U het geantwoord toe hulle gevra het. U was bereid om hulle te vergewe, al moes hulle soms vir hulle sonde boet. Maak die Here, ons God, groot. Kniel voor Hom neer en erken Hom vir wie Hy is. Die Here, ons God, is heilig! Die hele wêreld moet die Here loof en aanbid! Dien Hom met vreugde. Gaan na Hom toe. Sing vol blydskap en opgewondenheid. Jubel dit uit dat die Here die enigste God is. Die Here het ons gemaak. Elkeen van ons behoort aan Hom: ons is Syne. Ons leef elke dag uit sy hand. Die Here sorg vir ons net soos ’n skaapwagter sy skape versorg. Ons kan nie sonder die Here se goedheid klaarkom nie. Dien die Here. Loof Hom veral daar waar die gelowiges bymekaarkom. Sing lofliedere saam met almal wat die Here liefhet. Loof sy Naam. Luister mooi, die Here is ’n goeie God! Hy sal ons wat in Hom glo, nooit ophou liefhê nie. Hy is ’n goeie God, nou en vir altyd! Ek wil sing van u liefdevolle goedheid en u regverdigheid. Ek wil liedere sing oor hoe groot en belangrik U is. Ek wil probeer leef soos U wil hê. Wanneer kom U na my toe? Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees. Ek wil niks met slegte dinge te doen hê nie. Ek hou ook net mooi niks van al die dinge wat slegte mense doen nie. Daarmee wil ek niks te doen hê nie. Van allerhande slegte gedagtes wil ek wegbly, en aan dinge waarvan die Here nie hou nie, wil ek nie eens dink nie. Ek kan mense wat skinder, nie verdra nie. Ek wil hulle sommer iets aandoen. ’n Windbol wat te veel van homself dink, wil ek sommer net daar bestraf. Ek hou baie van mense wat die Here getrou dien en doen wat reg is. Hulle is meer as welkom by my. Hulle kan vir my werk. Iemand wat lieg en bedrieg, moet dit nie eens oorweeg om naby my paleis te kom nie. Daar sal nie een dag verbygaan dat ek nie slegte mense die stryd sal aansê nie. Ek sal nie ophou tot hulle almal aan die pen gery het nie. *** Here, help my as ek bid! Luister tog as ek U smeek om my nood te verlig! Moet my nie ignoreer as ek in ’n krisis is nie! Wys dat U my gebed hoor! Gryp in as ek tot U bid! Help my, Here, want my lewe gaan verby soos mis voor die son. My hele liggaam brand soos ’n kool vuur. Daar is geen krag meer in my oor nie. Ek kan nie eens eet nie. My pyn is so erg dat ek aanmekaar kreun van die seer. Ek is net vel en been van pyn. Ek is eensaam; my lewe is soos ’n reuse-ashoop. Ek kan nie meer slaap nie. Ek wag heeldag vir niks. Mense wat niks van my hou nie, lag my uit. Hulle spot met my. Hulle gebruik my naam as ’n vloekwoord. Al waarvan ek leef, is my eie trane. Omdat U vir my kwaad is, laat U my swaarkry. U het my ver van U af weggegooi. My lewe raak al hoe korter; my dae word al hoe minder. Ek is soos gras wat besig is om uit te droog. Here, U heers vir altyd. U is altyd daar. U sal ingryp. U sal Jerusalem weer met u liefde omvou. Dit is nou die tyd om vir u kinders goed te wees. Hulle kry baie swaar. Ons is lief vir die stad waar u woonplek is. Alles in Jerusalem is platgeslaan. Maar U sal dit weer opbou. Dan sal mense wat U nie dien nie, weer respek vir U hê. Hulle sal U begin dien. Leiers oor die hele wêreld sal sien dat U God is. Die Here is baie groot. Hy het sy stad weer opgebou! Die Here het mense gehelp wat sy hulp gevra het. Hulle was magteloos, maar die Here het nie sy rug vir hulle gekeer nie. Al hierdie dinge is neergeskryf. Daarom sal die kinders en kleinkinders van ons geslag die Here nog baie lank prys. Almal sal Hom loof omdat Hy uit die hemel vir sy kinders gesorg het. Hy het gesien wat met hulle gebeur. Hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle moet help. Hulle was in groot moeilikheid. Die Here het hulle toe gehelp. Hulle sal vir almal van Hom vertel. Oral waar mense Hom aanbid, sal die Here geprys word. Wanneer al die leiers en mense bymekaarkom om die Here te dien, sal sy kinders oor sy grootheid praat. Die Here het my krag weggevat. Hy het my lewe korter gemaak toe ek nog jonk was. Daarom het ek vir Hom gesê: “My God, ek wil nie so jonk doodgaan nie. Vir U is dit geen probleem nie. U is altyd daar! In die begin het U die aarde gevorm. Ook die hemel het U self gemaak. Uiteindelik sal hemel en aarde verdwyn. Maar U sal nog steeds daar wees! Ja, al hierdie dinge sal ophou bestaan. Dit is soos klere wat ’n mens stukkend dra. Dit sal vergaan. U sal dit laat verdwyn. Maar U is altyd daar. U jare kan nie in tyd gemeet word nie. U het geen begin of einde nie.” Ons kinders sal hier bly. Ons kleinkinders sal in die land bly woon. U sal hulle almal beskerm. Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys. Ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie. Ek loof Hom! Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond. Hy red my uit die kloue van die dood. Hy maak dat ek vir ander mense omgee en goeie dinge vir hulle doen. Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe. Hy gee my arms vol krag. Hy maak my so sterk soos ’n jongmens. Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed. Hy sorg dat reg aan hulle gedoen word. Dink net hoe Hy vir Moses gesê het wat Hy van hom verwag en hoe Hy sy kinders gaan help. Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons. Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief. Die Here sal jou nie aanhou straf vir die verkeerde dinge wat jy gedoen het nie. Ook bly Hy nie vir altyd kwaad oor iets nie. Hy straf ons nie volgens dit wat ons regtig verdien nie. Hy vergeld ons nie op dieselfde manier vir al ons slegte dade nie. So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien. So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg. Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is. ’n Mens leef net vir ’n kort rukkie. Jy is maar soos gras wat daarbuite groei. Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie. Die gras gaan net daar dood. So gaan dit ook met mense. Daar is geen grense aan die Here se liefde nie. Dit sal vir altyd aanhou vir mense wat hom dien, vir geslagte lank. Elkeen wat Hom dien en die ooreenkoms nakom wat Hy gesluit het, kan op sy liefde reken. Oor die jare heen help Hy mense. Die Here help almal wat na Hom luister. Die Here regeer uit die hemel. Hy is die sterkste van almal. Hy heers oor alles. Kom prys die Here, sterk engele wat vir die Here werk! Julle maak Hom baie gelukkig omdat julle doen wat die Here wil hê. Kom prys die Here, al julle ontelbare skares in die hemel wat Hom gelukkig maak! Kom prys die Here, almal en alles wat deur Hom gemaak is! Prys Hom op elke plek waar Hy regeer. Ek wil ook die Here prys met my hele lewe! Ek sê vir myself: Kom prys die Here! Here, my God, daar is niemand wat groter is as U nie! U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie. Soos ’n mens sy oë toedruk as hy na helder sonlig kyk, so oorweldig u grootheid ons. Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk. U het die blou hemel soos ’n tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind. U beheer die reën en die wind. As die wind waai, sien en hoor ons u krag. U laat die weerlig slaan waar U wil. Die Here het die aarde op ’n vaste baan om die son geplaas. Op daardie baan sal dit vir altyd bly. Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel. Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers. Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het. Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword. Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê. Nou het die see ’n grens. U het dit getrek. Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie. U sorg dat daar genoeg water is. Water borrel uit fonteine en vloei dan tussen die berge deur. Al die wilde diere kan daarvan drink. Ook wildedonkies gaan les hulle dors daar. By die water maak die voëls hulle nes; tussen die bome hoor jy hoe hulle sing. Uit die wolke laat Hy dit reën op die berge. Hy gee so baie reën dat die water nie meer kan wegsak nie. Hy laat gras groei vir die diere om te eet. Die groen plante is nuttig vir die mense, dit is hulle kos wat uit die aarde kom. So is daar wyn, wat jou vrolik maak as jy genoeg drink. Daar is olyfolie, waarmee jy jou vel kan versorg. Die kos bou jou kragte op. Die bome wat die Here geplant het, kry meer as genoeg water. Ook die seders op die Libanon wat Hy geplant het. Voëls maak nes in hulle takke. Die reier bly in die hoë toppe van die bome, terwyl steenbokkies tussen die klippe van die hoë berge rondspring. Die dassies skuil tussen die rotse. Hy het die maan gemaak. Soos ’n horlosie wys dit nuwe maande aan. Die son gaan elke dag klokslag op die regte tyd onder. As U dit laat donker word in die nag, kruip die nagdiere uit hulle gate. Dan begin die bos lewe. Jong leeus brul wanneer hulle op soek is na kos; hulle herinner God om vir hulle kos te gee. Wanneer dit te warm word, verdwyn hulle en gaan lê tussen die gras. Mense gaan in die dag uit hulle huis om te werk, maar saans kom hulle terug nadat hulle geld verdien het. Daar is baie dinge wat U gemaak het, Here! U het alles gemaak omdat U weet hoe. U het die aarde met u hande gemaak. Kyk net hoe groot en uitgestrek is die see. Onder in die water is daar duisende derduisende seediere, grotes en kleintjies, noem maar op. Bo-op die water seil groot skepe rond, terwyl seemonsters onder in die water speel. Almal is van U afhanklik. U gee vir almal kos op die regte tyd. U sorg dat hulle kan eet. Hulle kom dit net by U haal. U gee genoeg sodat almal daarvan vol kan word. Wanneer U ophou gee, is mens en dier in die moeilikheid. Hulle lewe is in u hande. U laat hulle ook doodgaan. Met u krag het hulle in die wêreld gekom. Dis U wat nuwe lewe uit die grond laat opkom. U laat groenigheid uitspruit. Mag mense die Here altyd bewonder! Mag die Here alles wat Hy gemaak het, geniet! Die Here is so sterk. Hy kyk net na die aarde, dan begin dit bewe. Hy vat net aan die berge, dan raak dit aan die brand. So lank as wat ek lewe, sal ek vir die Here sing. Ek wil Hom eer. Ek sal lofliedere sing tot eer van my God, terwyl ek lewe. Mag ek oor dinge dink wat die Here gelukkig maak. Ek geniet dit baie om te praat oor alles wat Hy gedoen het. Ek wens dat hulle wat die Here nie liefhet nie, gou sal verdwyn. Hulle wat weier om die Here te dien kan maar doodgaan. Maar ek sê vir myself: Jy moet vir die Here baie dankie sê vir alles. Kom, prys die Here! Prys die Here! Bid tot Hom! Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het. Sing liedere, maak die Here se Naam groot. Jubel oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen. Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam. Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees. Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Kruip by Hom weg. Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het. Julle is deel van die nageslag van Abraham, die kneg van die Here. Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is. Die Here is ons God! Die hele aarde is vol van al sy magtige dade. Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het, sy beloftes wat Hy aan duisende geslagte gegee het! Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het, en sy belofte aan Isak. Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gemaak het toe Hy gesê het: “Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou, dit is jou erfporsie, jou besitting!” Toe Israel nog maar ’n klein groepie was, vreemdelinge in ’n nuwe land, het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek, van een klomp mense na ’n ander. Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie. Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie. God het vir hulle gesê: “Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders op te lig nie. Hulle is Myne. Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.” Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom. Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie. Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur. Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur. Hy was die hoof oor die belangrike amptenare. Al die slim mense moes hy onderrig. Israel het toe na Egipte toe gekom, Jakob het as ’n vreemdeling in Gam se land gaan bly. Die Here het gesorg dat hulle baie kinders het, baie meer as die mense wat hulle verdruk het. Hy het die Egiptenaars teen sy mense laat draai. Later was hulle so vol haat dat hulle sy dienaars sleg behandel het. Die Here het toe vir Moses, sy dienskneg, gestuur, ook vir Aäron wat Hy self uitgekies het. Hulle het groot wonderwerke gedoen. Daar in Gam se land het hulle vir die Egiptenaars gewys hoe sterk die Here is. Die Here het alles laat donker word, maar hulle het geweier om na Hom te luister. Hy het hulle water in bloed verander. Al hulle visse het doodgegaan. Skielik het hulle land gewemel van paddas, tot in die koning se slaapkamer. Toe die Here die bevel gee, het steekvlieë op hulle toegesak. Muskiete was die hele wêreld vol. Die Here het hael en donderweer oor hulle gestuur in plaas van sagte reën. Swaar donderweer het hulle land uitmekaargeslaan. Hy het al hulle vrugtebome en wingerdstokke van die aarde af weggevee. Daar het nêrens ’n boom staande gebly nie. Hy het net ’n woord gesê, toe sak sprinkane op hulle toe. Hulle was so baie, jy kon hulle nie tel nie. Hulle het elke stukkie groenigheid in die Egiptenaars se land opgeëet. Daar het nie ’n plant of ’n vrug iewers oorgebly nie. Al die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf. In ’n oogwink was hulle sonder krag of hoop. Toe het Hy Israel laat wegtrek met arms vol silwer en goud. Niemand van hulle het in Egipte agtergebly nie. Die mense van Egipte was bly dat hulle padgegee het, want hulle was teen hierdie tyd baie bang. Die Here het elke dag ’n wolk oor sy volk uitgesprei om hulle koel te hou, en ’n groot bol vuur in die nag om vir hulle lig te gee. Hulle het gebid vir kos, toe stuur Hy vir hulle kwartels om te eet, brood uit die hemel het al hulle hongerpyne weggevat. Hy het ’n rots laat oopgaan, toe loop daar water uit, soos ’n magtige rivier het dit deur die droë woestyn gevloei. Dit alles het Hy gedoen omdat Hy sy belofte onthou, sy belofte wat Hy aan Abraham, sy kneg, gemaak het. Hy het sy volk al singende laat uittrek. Almal wat Hy uitgekies het, het gejuig van vreugde. Hy het vir hulle ongelowiges se grond gegee. Die land wat hulle met moeite verkry het, het God se volk in besit geneem. Wat ander met groot moeite in die hande gekry het, het hulle vir hulle gevat sodat hulle daar kan doen wat Hy sê en op die regte pad kan stap wat Hy vir hulle wys. Prys die Here! Prys die Here! Hy is goed. Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd! Wie op aarde het ooit genoeg woorde om te sê hoe groot en sterk die Here is? Wie kan sy Naam genoeg loof? God hou baie van elkeen wat doen wat reg is, wat elke kans aangryp om sy wil te doen. Hy laat dit goed gaan met sulke mense. Here, onthou my tog wanneer U vol vreugde is oor u kinders. Sluit my in wanneer U hulle help, sodat ek kan sien hoe almal wat U uitgekies het, oorloop van geluk. Ek wil bly wees saam met al u kinders. Ek wil feesvier saam met elkeen wat aan U behoort. Ons het baie verkeerde dinge gedoen, nes ons voorgeslagte. Ons het nie op die regte pad gestap nie. Ons het U elke keer in die steek gelaat. Daar in Egipte het ons voorouers hulle nie gesteur aan die groot dinge wat U gedoen het nie. Hulle het gou-gou vergeet hoe vol liefde en goedheid U is. Daarom was hulle so hardkoppig daar by die Rietsee. Maar die Here het hulle gered, om sy reputasie te beskerm. Hy wou vir hulle wys hoe groot Hy is. Hy het met die Rietsee gepraat, en in ’n oogwink was dit kurkdroog! Hy het hulle dwarsdeur die see laat stap asof dit ’n droë woestyn is. Hy het hulle gered uit die hand van hulle haters. Hulle is bevry uit die greep van die mense wat hulle laat swaarkry het. Die waters van die see het oor hulle vyande gespoel. Nie een het bly leef nie. Toe het die volk geglo dat die Here doen wat Hy sê. Hulle het Hom geloof en geprys! Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het. Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie. Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink. Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het hulle geestelik laat uithonger. Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het. Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk. Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee. ’n Vuur het onder hulle gebrand. Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie. By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak, hulle eie handewerk aanbid. Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld, vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet. Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het. Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het, sy magtige dade in die land van Gam en sy reusewonderwerk by die Rietsee. God se geduld met sy volk was op. Hy wou Israel vernietig, maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie. Hy het God se woede laat bedaar en gekeer dat die volk weggevee word. Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip; hulle het die Here nie op sy woord gevat nie. Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla. Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat. Toe het God besluit: Genoeg is genoeg! Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie. Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word, hulle sou tussen ongelowiges gaan bly. Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig, hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is. Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak; daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het. Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf. Toe het die siekte opgehou. Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou. Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak, selfs Moses het gely onder hulle sonde. Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was, het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie. Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie, maar links en regs met ongelowiges begin trou. Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef. Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid en vasgevang geraak in afgodery. Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels. Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak, hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer. Die hele land is met onskuldige bloed besoedel. Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg. Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop. Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk. Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie. Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop, hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers. Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly. Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal, maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie, hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink. Maar God het gesien hoe swaar hulle kry, Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help. Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het. Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek. Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het. Ag, Here ons God, kom help ons tog! Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof en bly kan wees oor al u goedheid! Die Here, die God van Israel, moet geloof word, nou en vir altyd. Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar! Prys die Here!” Sê vir die Here baie dankie met al julle liedere, want Hy is goed. Ja, Hy het sy kinders altyd lief! Dit moet mense sê as die Here hulle uit die moeilikheid help; ja, almal wat Hy uit nood gered het, moet so sê. Dit maak nie saak uit watter land of van waar hulle kom nie. Party mense sukkel in die lewe; hulle weet nie watter kant toe nie. Dis of hulle in die woestyn verdwaal het. Nêrens kan hulle rus vind nie. Hulle wil graag gelukkig wees. Hulle soek oplossings, maar kry niks. Dit maak hulle moedeloos. Hulle het geen krag oor nie. In hulle nood het hulle die Here gevra om te help. Hy het hulle uit daardie moeilikheid gehelp. Hy het hulle gehelp om weer gelukkig te wees. Sy hulp het hulle weer nuwe koers in die lewe gegee. Nou sê hulle vir die Here baie dankie vir sy liefde. Hulle loof Hom vir die wonderlike dinge wat Hy doen. Ja, Hy het gesien mense het Hom nodig en Hy het hulle uit die moeilikheid gehelp. Hy gee vir hulle meer as wat hulle nodig het. Daar is mense wat in baie groot moeilikheid is. Dit lyk of hulle in ’n pikdonker plek vasgekeer is. Hulle is vas en kan nie uitkom nie. Dit het vir hulle gevoel of hulle swaarkry hulle soos in ’n tronk vashou. Hulle het nie na God geluister nie. Hulle het nie gedoen wat die Allerhoogste van hulle gevra het nie. Hy het toegelaat dat ander hulle verneder. Hy het hulle soos vloerlappe laat werk. So het alles vir hulle inmekaargeval. Daar was niemand om hulle te help nie. In hulle nood het hulle die Here gevra om asseblief te help. Hulle het na Hom geroep. Hy het hulle uit daardie moeilikheid bevry. God het hulle donkerte in lig verander. Hy het hulle uit die tronk uit laat stap as vry mense. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy doen. Ja, die Here se krag is baie groot. Hy breek die greep van die donkerste krisis. Niks is sterker as Hy nie. Daar is dwase wat baie dom dinge doen. Deur verkeerde dinge te doen het hulle hulleself in groot swaarkry gedompel. Hulle was baie siek. Alle soorte kos het hulle naar gemaak. Hulle het by die dood omgedraai. In hulle swaarkry het hulle die Here gevra om te help. Hy het hulle gehelp. Die Here het net een woord gesê, en toe word hulle gesond. So het Hy hulle uit die dood se kloue gered. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy doen. Hulle sal opgewonde bly vertel van alles wat die Here gedoen het. Hulle moet vir Hom aanhou dankie sê. Partymaal beland mense in groot gevaar op die see. Hulle klim in klein skepies om handel te gaan dryf. Hulle sien dan wat die Here doen. Hulle besef watter wonderlike dinge Hy ver van die land af laat gebeur. Daar in die diepsee sê Hy net een woord, dan kom daar ’n groot storm op. Die water slaan meters hoog bokant hulle ou skepies. Eers skiet die golwe die ou skepies hoog in die lug in op. Hulle vlieg byna tot by die wolke. Dan laat val hulle hulle tot op die bodem van die see. Die mense word baie bang. Hulle word seesiek. Soos dronk mense word hulle heen en weer geslinger. Hulle kan nie eens dink wat om te doen nie. Almal is deurmekaar. Hulle is baie bang. In hulle nood het hulle die Here gevra om te help. Hy het hulle uit daardie moeilikheid gehelp. Hy het die storm stilgemaak. ’n Mens kan die klank van stilte hoor. Al die hoë golwe het gaan lê. Die mans was baie bly toe die storm bedaar het. Daarvandaan het God hulle veilig laat vaar tot by die volgende hawe. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy vir mense doen. Waar al sy kinders bymekaarkom, sal hulle sy Naam grootmaak. In die byeenkoms waar die leiers ook is, sal hulle vertel wat Hy gedoen het. Hulle sal Hom bewonder. Die Here is baie sterk. Hy het riviere in droë woestyne verander. Fonteine het Hy heeltemal laat opdroog. Daar het net ’n kaal stuk grond oorgebly. Vrugbare grond het Hy heeltemal onvrugbaar gemaak. Slegte mense het daar gebly. Dit is hulle skuld. Hulle het verkeerde dinge gedoen. Toe straf die Here hulle. Tog verander die Here die woestyn in ’n waterryke land. Droë gebiede omskep Hy in waterplasse en fonteine. Daar gee Hy kos vir mense wat niks het om te eet nie. Rondom die water begin alles lewe. Mense trek daarheen om daar te bly. Gou-gou is daar ’n dorpie. Die mense begin plant en saai. Wingerde wat hulle aangelê het, begin druiwe dra. Die Here is baie goed vir hulle. Hy het vir hulle goeie dinge gegee. Die dorpie het gegroei. Die mense het al hoe meer geword. Hulle vee het aangeteel en baie geword. Maar hulle het weer minder geword. Hulle was moedeloos. Ander mense het hulle sleg behandel. Ongelukke het hulle begin tref. Hulle probleme het net te veel vir hulle geword. Die Here sien dit alles raak. Hy straf die magtige leiers en laat toe dat ander hulle verneder. Wanneer hulle doen wat Hy nie wil hê nie, sorg Hy dat ander op hulle neersien. Hy sal hulle koers laat verloor. Hulle sal nie meer gelukkig wees nie. Die Here beskerm mense wat sy hulp nodig het. Hy keer dat ander hulle onderdruk. Hy sorg vir hulle en hulle kinders. Soos ’n herder na sy kudde skape omsien, so versorg Hy hulle. Elkeen wat die Here dien, weet wat Hy vir sy kinders doen. Hulle is baie bly. Die Here stop slegte dinge. Hy laat dit verdwyn. As iemand die lewe wil verstaan of gelukkig wil wees, moet hy hierdie dinge ernstig opneem. Hy moet raaksien dat die Here sy kinders baie liefhet. *** Daar is vrede in my hart, o God. U het my getroos. Daarom wil ek sing, ja, ek wil lofliedere sing om U te eer. Laat ek my musiekinstrumente nader trek. Ek sal baie vroeg in die môre opstaan. Met my musiekinstrumente sal ek die dagbreek laat nader kom. Ek sal sing dat die son kan opkom. Onder al die mense sal ek U prys, Here. Ek sal lofliedere sing om U onder vreemde mense groot te maak. Ek doen dit omdat U vir my baie lief is. U liefde is so groot dat niemand dit kan meet nie! En U is so ongelooflik getrou. O God, wys tog vir ons dat niemand groter is as U nie. Selfs nie eens in die hemel is iemand groter as U nie! U is so groot dat almal op aarde dit kan raaksien! Red al u geliefde kinders met u krag, Here. Help ons! Vanuit die plek waar Hy aanbid word, het God vir sy kinders, die Israeliete, gesê: “Ek het hierdie land verower. Daar is baie plekke in die land wat Ek vir julle sal gee. Die hele land is Myne. Ek het vir julle elkeen plek gemaak. Ek het vir elkeen van julle ’n werk gegee. Ook die plekke rondom julle gebruik Ek. Ek het ook mag oor julle bure, want Ek het hulle almal verower.” Israel het vir die Here gesê: Daar is niemand om ons vyande se hoofstad in te neem nie. Dis ’n sterk stad. Niemand wil ons daarheen vat nie. God, U het ons van U af weggestoot. U lei en beskerm nie ons soldate nie! Help ons teen ons vyande. Om op mense te vertrou help niks nie. Maar as die Here ons help, is ons aan die wenkant. God sal ons groot dinge laat doen. Maar die Here sal self afreken met daardie mense wat nie vir ons lief is nie. God, ek prys U altyd. Moet my asseblief nie ignoreer nie! Moenie stilbly as ek praat nie. Mense wat U nie wil dien nie, praat lelik van my. Party mense is oneerlik. Hulle lieg oor my. Uit wat hulle sê, kan ’n mens sien dat hulle niks van my dink nie. Hulle baklei sommer vir niks met my. Ek is hulle vriend, maar hulle is onbeskof met my. Hulle gooi my liefde in my gesig terug. Tog hou ek aan om vir hulle te bid. As ek iets goeds vir hulle doen, behandel hulle my net slegter. Hulle doen net mooi die teenoorgestelde as ek. As ek wys dat ek hulle liefhet, raak hulle al hoe leliker met my. Hulle sê: “Laat hy in die hof voor ’n regter beland wat self ’n misdadiger is. Laat sy vyand sy aanklaer wees. Sy lewe moet vir hom ’n nagmerrie wees. Wanneer hy voor die hof kom, moet hy geen kans hê nie. Die regter moet hom dadelik skuldig bevind. As hy bid, laat dit selfs as ’n misdaad gereken word. Laat hom baie jonk doodgaan. Iemand anders moet sy werk kry. Sy kinders moet weeshuis toe gaan. Daar moet niks wees wat sy weduwee kan erf nie. Sy moet stoksielalleen agterbly. Laat sy kinders loop en bedel. Hulle moet kos in asblikke gaan soek. Mense moet hulle van die een ashoop na die ander wegjaag. Mense vir wie hy geld skuld, moet alles kom vat wat hy het. Hy moet elke liewe sent betaal. Die res van sy goed moet mense wat hy nie eens ken nie, kom steel. Niemand moet daardie slegte mens kan vertrou nie. Almal moet hom in die steek laat. Niemand moet hom eens jammer kry nie. Niemand moet hom liefhê nie. Ook sy weeskinders moet sonder liefde grootword. Hy moenie ’n nageslag hê nie. Mense moenie eens van hom weet nie. Sy kinders en kleinkinders, ja, sy hele familie moet doodgaan. Niemand mag oorbly nie. Die Here moet sy ouers se sonde straf. Die Here moet nie een van die slegte dinge wat sy ma gedoen het, vergewe nie. Hy moet vir altyd die slegte vrugte pluk van daardie dade. Die Here moet sorg dat niemand ooit weer aan daardie mense dink nie. Laat hierdie dinge gebeur omdat daardie skurk nooit iets goeds vir iemand anders gedoen het nie. Hy het nooit mense gehelp wat arm en behoeftig is nie. Mense wat in die moeilikheid was, het hy nog swaarder laat kry. Diegene wat moedeloos was, het hy heeltemal gebreek. Hy het dit geniet om mense slegte dinge toe te wens. Al daardie dinge moet hom nou tref. Hy het nooit ’n goeie woord vir ander gehad nie. Laat dieselfde met hom gebeur. Hy is baie lief om ander te vloek. Van binne en buite is hy sleg. Dit is soos die bloed in sy are; soos die murg in sy pype. Hy kan nie daarvan ontslae raak nie. Mag die Here al hierdie dinge laat kom oor hulle wat niks van my hou nie. Hulle sê altyd lelike dinge van my. Daarom verdien hulle hierdie dinge. Here, wees asseblief goed vir my. U Naam is op die spel. U is tog die Here, my God! Help my uit die moeilikheid uit. U het u kinders baie lief. Ek is in die moeilikheid. Ek het u hulp nodig. My binneste is stukkend. Ek is besig om stadig dood te gaan. Daar is niks waaraan ek kan vashou nie. My bene vou onder my in. Ek kan nie meer eet nie. Ek is maer. Daar is geen vet meer aan my nie. Slegte mense het op my getrap en my beledig. As hulle my sien, maak hulle ’n gek van my. Hulle haat my, en hulle is bly as dit sleg met my gaan. Here, my God, help my tog! Help my asseblief uit die moeilikheid uit. U het u kinders baie lief. Mense moet sien dat U hulle uit die moeilikheid gehelp het. Slegte mense kan my maar vloek, Here. Gee U vir my goeie dinge. Hulle wou my lelik behandel en seermaak, maar hulle kon nie. Ek dien U. Dit maak my sommer baie bly. Verneder daardie mense wat teen my is. Laat hulle met hulle kop in skaamte wegstap. Dan sal ek die Here prys. Almal moet dit hoor. Ek sal Hom voor baie mense loof. Hy help almal wat sy hulp nodig het! Hy help mense teen skurke wat ander seermaak. Die Here het vir my heer, die koning, gesê: “Kom sit hier op die ereplek tot Ek al jou vyande onderwerp het.” Die Here sal uit Sion jou koninklike mag laat voortrol: heers dan oor jou vyande. Jou mense sal graag in die oorlog saam met jou kom veg. Die jongmense sal al van vroeg af reg staan, aangetrek vir die geveg. Dit sal vir jou lekker wees om dit te sien. Die Here het ’n belofte gemaak waaroor Hy nie spyt sal wees nie: “Jy sal My op ’n wonderlike wyse dien, soos Melgisedek.” Die Here sal jou laat wen. As Hy kwaad word, verbrysel Hy jou vyande. Of dit nou belangrike heersers met baie mense is, dit maak nie saak nie. Die lyke van jou vyande en hulle leiers sal gesaai lê. Maar ons koning sal langs ’n stroompie water kan ontspan en daarvan drink, want hy het gewen. Kom prys die Here! Ek wil vir die Here dankie sê met alles wat ek het. In die gemeente, by eredienste, in klein groepe, by bidure, ja, by enige byeenkoms van sy kinders wil ek Hom prys. Die Here doen baie groot dinge, dit laat jou so klein voel. Elkeen wat opgewonde is oor wat Hy doen, sal aanmekaar daarvan praat en dink. Wat die Here doen, is te groot om te verstaan; dit is te wonderlik om te beskryf. Hy doen altyd net die regte dinge. Die Here sorg dat mense die wonderlike dinge onthou wat Hy doen. Hy het ’n goeie hart. Hy gee graag vir ons goeie dinge. Hy voel gou jammer vir iemand. Hy sorg vir mense wat Hom dien deur vir hulle kos te gee. Hy doen altyd wat Hy beloof het in sy ooreenkoms met ons. Hy het vir sy volk Israel ’n land beloof waar vreemde volke gebly het. Toe laat Hy hulle die land met sy krag inneem. Israel het geleer dat God sy beloftes altyd nakom. Die Here is getrou. Hy tree reg op. Alles wat Hy doen, getuig daarvan. Alles wat Hy sê, kan ’n mens maar glo. Sy woorde staan vas. Jy weet waar jy met Hom staan. Hy is getrou en loop nie draaie met jou nie. Die Here help sy kinders as hulle hulp nodig het. Hy red hulle uit die moeilikheid. Hy het ’n belofte aan hulle gemaak wat altyd sal bly staan. Vir God moet jy groot respek hê. Jy kan nie sy Naam los en vas gebruik nie. Om gelukkig te wees moet jy die Here dien. Dit is die goue reël van die lewe. As jy dit doen, verstaan jy die geheim van die lewe. Die Here verdien al die dankies wat mense Hom kan gee. Prys die Here! Die gelukkigste mense op aarde is hulle wat groot respek vir die Here het, wat met blydskap luister na alles wat die Here sê. Hulle nageslag is baie groot. Die Here se goedheid is by sulke mense oral waar hulle gaan. Hulle het meer as genoeg om van te leef. Hulle doen net goed aan ander mense. God se goedheid skyn soos die son oor hulle hele lewe. Hy is by hulle met sy goedheid, sy ontferming, sy beskerming. Iemand wat die Here vrees, deel graag sy besittings met ander. Hy leen uit, hy doen altyd die regte dinge. Almal praat daarvan. Hulle onthou hom, want hy struikel nie. Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n. Omdat hy op die Here vertrou, is hy glad nie bang nie, want hy weet sy vyande sal tot ’n val kom. Hy strooi sy besittings uit; arm mense dra hy op die hande. Hy hou nooit op om goed te doen nie. Wat ’n leefstyl! Dit bring baie eer en vreugde. Slegte mense is jaloers op hom, maar hulle woorde beteken niks. Slegte mense se planne kom ook tot niks. Ja, tot niks! Kom loof die Here! Julle wat die Here dien, sê dankie vir Hom. Prys sy Naam! Julle moet sorg dat mense altyd die Here prys, nou en vir altyd. Van die môre tot die aand moet julle sy Naam loof. Daar is niemand wat soveel mag het soos die Here nie. Hy is groter as enigeen in die hemel. [5-6] Geen mens of volk is so sterk soos Hy nie. In die hemel of op die aarde is daar niemand soos die Here ons God nie. Hy is baie belangrik. Tog sien Hy onbelangrike en nederige mensies dadelik raak. *** Iemand wat deur ander mense vertrap is, help Hy om weer op te staan. Hy tel arm mense van die ashoop af op. Dan behandel Hy hulle soos konings. Hy laat hulle tussen belangrike mense sit. Hy laat die onmoontlike gebeur: ’n Vrou wat geen kinders kan hê nie, laat Hy swanger word. Hy verander ongeluk in blydskap. Kom loof die Here! Toe Israel uit Egipte getrek het en Jakob se mense padgegee het van daardie spul barbare af, toe het Juda God se spesiale grondgebied geword en Israel die plek waar die Here sy groot mag wys. Die see het net een kyk na God se groot krag gegee en op die vlug geslaan. Die Jordaan het ook vreesbevange padgegee. Magtige berge het soos ’n klomp skape rondgespring en die heuwels soos lammetjies. See, wat is fout met jou dat jy so vinnig op die vlug slaan, en jy, Jordaan, hoekom gee jy pad? Berge, hoekom spring julle soos ’n klomp skape rond, en heuwels, hoekom skarrel julle soos lammetjies rond? Aarde, jy moet bewe van vrees wanneer die Here op die toneel verskyn! Bewe as die God van Jakob sy opwagting maak. Hy het klipharde rotse in ’n groot dam vol water verander, harde klippe in ’n fontein vol vars water! Dit is nie ons mense wat eer moet kry nie, Here! Ek wil dit herhaal: Nie ons nie, maar U alleen verdien eer. U het u kinders baie lief. U laat hulle nooit in die steek nie. Ek kan dit nie verstaan nie. Waarom spot mense wat ander gode dien met ons wanneer hulle sê: “Waar is hulle God dan?” Ons God bly bo in die hemel. Hy doen alles wat Hy wil. Daardie mense dien dooie gode. Dit kan geld wees of ander goed wat kosbaar lyk. Dit is alles dinge wat mense fabriseer. Dit beteken net mooi niks. Dit lyk of hulle kan praat, maar hulle maak geen geluid nie. Verder lyk dit of hulle kan sien, maar hulle is stokblind. Ook lyk dit of hulle kan hoor, maar hulle reageer op geen geluid nie. Daar is ’n nagemaakte neus wat nie kan ruik nie. Hulle hande kan niks raak vat nie. Met hulle voete kan hulle nie ’n tree loop nie. Hulle is stom soos ’n klomp dooie klippe. Mense wat sulke dooie gode maak om te aanbid, is net so hopeloos soos hulle handewerk. Hulle glo eintlik aan niks en het niks om op te vertrou nie. Kinders van die Here, julle moet op Hom vertrou! Hy help en beskerm sy kinders. Julle wat in die huis van God die Here dien en aanbid, vertrou op Hom! Hy help en beskerm sy kinders. Julle wat die Here dien, vertrou op Hom! Hy help julle en Hy beskerm julle. Die Here dink aan ons: Hy gee vir ons goeie dinge. Hy laat dit goed gaan met sy kinders wat Hom dien. Hy gee goeie dinge aan almal wat Hom dien en aanbid, klein en groot. Die Here sal vir julle ’n baie groot nageslag gee en julle baie maak. Hy wat alles in die wêreld gemaak het, sal julle baie gelukkig maak. Onthou net: Die Here bly in die hemelse wêreld. Die mens se blyplek is op die aarde! Daar is ’n groot verskil tussen Hom en mense. As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here! Ek het die Here baie lief. Hy help my as ek Hom baie mooi vra. Hy het mooi na my geluister. Daarom sal ek tot Hom bid so lank as wat ek lewe. Ek het so amper doodgegaan. Ek het al paniekerig daaroor begin word. Ek was doodsbenoud en bekommerd. Maar toe het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het by Hom gepleit: “Ag, Here, spaar tog my lewe.” Die Here was baie goed vir my. Hy sorg dat reg aan my gedoen word. Ons God het my soos ’n ma in sy liefde toegevou. Die Here beskerm mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het. Ek was in so ’n situasie. Toe ek op my swakste was, het Hy my gehelp. Ek het toe vir myself gesê: “Jy kan ontspan. Wees rustig. Die Here was baie goed vir jou.” Ja, U het my lewe gespaar. U het my getroos. U het gekeer dat ek ondergaan. Daarom sal ek saam met die Here lewe tussen almal wat nog leef. Ek het die Here vertrou toe ek gedink het ek kry baie swaar. Ek het gedink dis klaar met my. Toe ek bang was, het ek gesê: “Jy kan geen mens vertrou nie.” Hoe kan ek die Here ooit vergoed vir al die goeie dinge wat Hy vir my gedoen het? Maar ek sal vir Hom iets terugdoen: ek sal vir Hom dankie sê. Ek sal na Hom toe gaan. Ek het beloftes aan die Here gemaak. Ek sal dit hou sodat al sy kinders dit kan sien. Sy kinders is vir Hom baie werd. Daarom laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie. Ek het gesê: “Regtig, Here, ek dien U. Ook my ouers het U gedien. U het my lewe gespaar. Ek sal vir U iets doen om dankie te sê: ek sal U eer en aanbid.” My beloftes aan die Here sal ek nakom waar al sy kinders dit kan sien. Binne en buite die kerk sal ek dit nakom. Kom prys die Here! Kom prys die Here, al julle volke! Loof Hom, al julle nasies! Hoekom? Want Hy is baie lief vir julle. Hy doen wat Hy belowe het. Ja, die Here se liefde vir julle sal nooit ophou nie. Kom prys die Here! Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed; ja, sy liefde sal nooit ophou nie. Al die Here se kinders moet sê: “Sy liefde sal nooit ophou nie.” Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê. Toe ek in die moeilikheid was, het ek ernstig tot die Here gebid. Die Here het na my geluister. Hy het my gehelp. Die Here is by my. Daarom is ek vir niks bang nie. Niemand kan iets aan my doen nie. Die Here help my. Mense wat nie van my hou nie, sal my nooit onderkry nie. Ek sal hulle wen. [8-9] Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik. *** Mense wat nie van U hou nie, het my probeer onderkry. Maar ek het hulle gewen, want die Here het my gehelp. Die spul het my van alle kante bekruip. Maar die Here het my gehelp. Ek het hulle op hulle plek gesit omdat U by my was. Hulle het soos ’n swerm bye op my toegesak, maar hulle het verdwyn soos droë grassies wat in ’n vuur wegbrand. Die Here was by my, en ek het hulle gewen. Hulle het alles probeer om my te vernietig, maar die Here het my gehelp. Die Here beskerm my. Hy gee my krag. Hy het my uit die moeilikheid gehelp. Almal wat die Here dien, is baie bly omdat Hy hulle so uit die moeilikheid help. Hulle praat oor hoe Hy hulle help. Hy is baie sterk. Hy doen ongelooflike dinge. Die Here se kinders wen, want die Here is baie sterk. Ek sal nie doodgaan nie, maar bly lewe om oor al die groot dinge te praat wat die Here doen. Dit het maar swaar gegaan, maar die Here het gesorg dat ek nie doodgaan nie. Laat ek in die kerk ingaan vir die Here dankie sê en Hom aanbid, want Hy doen wat reg is. Ek wil kerk toe gaan. Ek wil vir die Here baie dankie sê. Daar voel ek naby Hom. Dankie dat U my gehelp het. U het my gered. U het gehoor toe ek na U geroep het. Soms dink mense dat iemand sommer niks is nie. Maar by God is dit anders. Wat soms vir mense onbelangrik is, is vir die Here belangrik. Dit is vir ons goed om dit te weet. Dit is die Here wat dit doen, en dit lyk vir ons na ’n wonderwerk. So ’n dag is baie besonders. Ons sal bly daaroor sing. Ag, Here, help ons asseblief. Luister, Here, maak ons tog gelukkig. Dit gaan goed met elkeen wat kom om die Here te dien. Julle wat die Here dien, sal baie gelukkig wees. Die Here is die enigste God. Hy help altyd. As Hy jou help, is dit soos ’n lig wat in ’n donker kamer inskyn. Kom ons hou ’n groot fees, want ons is baie bly. Ons moet vir Hom baie, baie dankie sê. Here, U is my God. Ek wil vir U dankie sê. O my God, ek wil u Naam grootmaak en prys. Kom prys die Here, want Hy is goed. Sy liefde sal nooit ophou nie. Daarvan kan jy seker wees. God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê. God hou baie van jou as jy sy woorde diep in jou hart bêre en elke dag jou bes doen om Hom gelukkig te maak, ook as jy nie agter al wat sonde is, aanhardloop nie, maar alles doen wat Hy vir jou sê. God, U sê presies vir my hoe ek moet leef. Hoe wens ek nie dat ek elke oomblik kan doen wat U vra nie. Dan sal ek nie so skaam kry as ek lelike dinge doen nie. Here, diep uit my hart wil ek vir U sê dat U baie goed is; ek leer elke dag so baie oor U. Ek loof U. Ek sal alles doen wat U vir my sê. Moet my asseblief nooit alleen laat nie! Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê? As hy alles doen wat U sê. Ek het net een doel: om U gelukkig te maak! Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê. Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. Here, U is so wonderlik! Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra. Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer. Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap; dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld. Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak. U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde. Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie. Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie. Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid. Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra. Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê. Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig. Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie. Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra! Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe. Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen. Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe. Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het. Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê. Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem. My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê. Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap. Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees. Ek is so lief vir u Woord. Ek is bly daaroor. Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly. Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie, ek dink heeltyd daaraan. Onthou asseblief tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my hele lewe daaraan vas. In slegte tye hou u beloftes my aan die gang. Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie. Dit wat U lank terug al gesê het, bly heeltyd in my gedagtes, dit gee my moed vir elke dag. Ek word baie kwaad as ek sien dat slegte mense hulle nie aan u Woord steur nie. U woorde is soos die mooiste musiek in my ore, al kry ek baie swaar. Tot in die nag dink ek aan U, doen ek net wat U sê. Om te doen wat U van my vra is my hele lewe! U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra. Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het. Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul; toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U. Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees. Selfs slegte mense het my laat probeer val, maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie. In die middel van die nag staan ek op om te bid, dan loof ek U omdat U so groot en goed is. My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê. Here, u goedheid is die hele wêreld vol. Leer my om na U te luister. U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het. Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte. Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby; nou doen ek net wat U sê. U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge. Leer my om u Woord te gehoorsaam. Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen. Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe. My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister. U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud. U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra. As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly. Ek vertrou op wat U sê. As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree. Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou. Vandag het ek u liefde bitter nodig! Help my, soos U belowe het. Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe! Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys. Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom. Hulle vertel ’n klomp leuens oor my. Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê. Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan. Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie. Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie; ek wag heeldag op u troos. Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak. Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?” Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand. Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie. Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou? Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak? Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig. Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê. Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien. Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister. U is so goed vir my; daarom vra ek: Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê. Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd. U goedheid raak nooit uit die mode nie. U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar! Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U. As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee. So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre, want hulle het my lewe gered. Ek is U s’n, van kop tot tone. Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap. Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê. Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute, maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd! Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens. U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg. Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het. Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is. My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie. Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie. U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap. Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe. Ek hou niks van skynheiliges nie, maar ek het u wet baie lief. By U kruip ek weg, want U is baie sterk, U pas my goed op. Ek wag op u Woord om my sterk te maak. Julle spul slegte mense moet dadelik padgee sodat ek kan doen wat my God sê. Here, hou my hand styf vas soos U beloof het, dan sal ek voluit lewe. Moenie my teleurstel nie, kyk dan net hoe glo ek in U. Hou my regop, dan is alles in orde, dan sal ek doen wat U sê. U hou niks van mense wat nie na U luister nie. Hulle praat ’n spul leuens. U vee goddelose mense van die aarde af soos ’n klomp rommel; daarom is ek so lief vir u Woord. Ek het baie groot respek vir U. Dit wat U doen, vul my met ontsag. Ek het nog altyd gedoen wat reg is, moenie dat my vyande my beetkry nie. Kies asseblief my kant, goeie God, moenie dat mense wat te veel van hulleself dink, my uitbuit nie. Ek sien baie uit na die dag dat U my kom help, ek hou vas aan u belofte dat U net doen wat reg is. Tree asseblief in liefde teenoor my op, wys my hoe ek moet lewe. Onthou, ek is u dienskneg, wys my wat dit presies beteken sodat ek kan doen wat reg is. Here, vat daardie spul vas wat u wet oortree. Ek het u voorskrifte met my hele lewe lief, dit beteken meer vir my as al die goud in die wêreld. Daarom doen ek alles wat U sê tot in die fynste besonderhede. Maar verkeerde dinge, dit haat ek. Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg. Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig, dit vul gewone mense met wysheid. Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe. Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet. Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad. Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie. Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen, sodat ek net kan doen wat U sê. Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen. Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie. Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge. U sê presies vir ons hoe ons moet leef. Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie. U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer! Daarom het ek u Woord so lief. Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie. U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar. Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe. Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!” Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen. Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou. Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help, ek wag dat U my moet antwoord. In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig. Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê. Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God. Here, laat my weer voluit leef! Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader, hulle loop al verder en verder van u wet af weg. Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid. Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan. Kyk ’n slag hoe sleg dit met my gaan en help my, want ek vergeet nie ’n enkele dag wat U sê nie. Kies asseblief my kant en help my uit hierdie gemors uit; laat ek weer die lewe geniet, soos U belowe het. Goddelose mense staan g’n kans om ooit gered te word nie, want hulle steur hulle nie aan wat U sê nie. Gelukkig hou u goedheid nooit op nie, Here, dit hou net aan en aan. Daarom pleit ek by U om nuwe lewe. ’n Hele klomp slegte mense is agter my bloed aan, maar gelukkig stap ek op u pad. Mense wat nie doen wat U sê nie se leefstyl maak my siek; dit is verskriklik dat hulle die rug vir U draai. Kyk na my! Sien tog raak dat ek elke woord van U liefhet. Here, hou asseblief aan om vir my goed te wees. Hou my aan die lewe omdat U so ’n goeie God is. Alles wat U sê, is die waarheid, elke woord daarvan! Dit sal vir altyd en altyd die waarheid bly. ’n Klomp belangrike mense vervolg my, al is ek onskuldig, maar dit vat nooit my respek vir u Woord weg nie. My hart loop oor van opgewondenheid oor elke woord wat U sê, dit is die grootste skat wat ek nog ooit in my lewe gevind het. Ek haat leuens, maar u wet, dit het ek lief met alles binne-in my. Ek kan U nie genoeg loof nie, elke kans wat ek kry, gebruik ek om vir U te sê dat alles wat U doen, reg en goed is. Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie. Here, ek hou u hand styf vas; ek wag dat U my kom help, ek doen net wat U sê. Alles wat U sê, word in my hart weggebêre, ek doen dit alles; ek is lief vir elke voorskrif uit u mond! Kyk net: ek gehoorsaam alles wat U sê en luister na u raad, my lewe is soos ’n oop boek voor U. Here, luister tog as ek smeek dat U my moet help, leer my om te verstaan wat U in die Bybel van my vra. Gee aandag aan my nood; moenie dit ignoreer nie! Red my soos U belowe het. Lof sal dan oor my lippe spoel, want U leer my hoe om te leef. Ek sal heeltyd sing oor u Woord, want alles wat U sê, is reg en goed. Hou my vas, want ek wil net doen wat U sê. Here, ek het nie genoeg woorde om vir U te sê hoe ek na u hulp smag nie, u wet bring soveel blydskap in my lewe. Maak my van binne af nuut, dan sal ek u Naam heeltyd loof. Maak my sterk om te doen wat U sê. As ek soos ’n skaap is wat verdwaal het, kom haal my asseblief! Ek sal u stem dadelik herken, want ek vergeet nooit een van u woorde nie. Toe ek in baie groot moeilikheid was, het ek tot die Here gebid. Hy het na my geluister en my gehelp. Here, beskerm my asseblief teen mense wat lieg en bedrieg. Bedrieërs, as julle maar weet wat die Here aan julle gaan doen. Julle sal voel soos iemand wat met ’n klomp pyle geskiet is. Dit sal voel of julle op ’n klomp brandende kole lê. Dit is vir my baie swaar om tussen mense te bly wat niks van my hou nie. Hulle behandel my soos ’n vloerlap. Dit voel of niemand my wil hê nie en of ek niks mag doen nie. Ek kan dit nie meer verdra om tussen mense te wees wat net wil baklei nie. Vrede is vir my baie belangrik. As ek egter daaroor begin praat, wil hulle net stry en baklei. Ek soek oral rondom my na iemand om my te help. Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op. Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie. Hy pas al sy kinders op. Hy slaap nooit. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie. Die Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees. Niks of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk. God pas jou elke dag op teen allerhande moeilikhede en probleme. Hy sal jou lewe mooi oppas. Die Here sal jou oppas waar jy ook al is: by die huis, by die werk of miskien êrens op pad. Hy sal jou altyd help, of jy kom en of jy gaan, nou en in die toekoms. Ek was baie bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” Nou staan ons hier binne-in jou, o Jerusalem. Jerusalem is goed gebou. Dit is waarheen al die kinders van God kom om vir Hom baie dankie te sê. Dit is wat Hy van hulle verwag. Hier word besluit wat reg of verkeerd is. Hier word die hofsake deur die nageslag van koning Dawid verhoor. Bid vir vrede in Jerusalem: Mag almal wat Jerusalem liefhet, gelukkig daar woon. Mag vrede die stad omvou sodat mense daar veilig mag voel. Ter wille van almal wat ek daar ken, bid ek: “Vrede!” Omdat die huis van die Here in Jerusalem staan, wens ek julle net die beste toe. Ek staan soos ’n bedelaar voor die Here wat oor alles regeer. Ons kyk op na die Here, ons God, soos werkers na hulle baas. Ons sal ons hande in afhanklikheid na die Here toe uitsteek en Hy sal vir ons goed wees. Wees goed vir ons, Here, wees baie goed vir ons! Ons het genoeg daarvan gehad om gespot te word. Ons is moeg vir die arrogansie van mense wat dink hulle is beter as ander. Mense wat te veel van hulleself dink, dink ook dat hulle op ander kan neersien. God se kinders het gesê: Ander mense wou ons vernietig. As die Here nie toe vir ons goed was en ons gehelp het nie, was dit verby met ons. Hulle was baie kwaad vir ons. Hulle wou oor ons loop. Ons sou verdwyn het soos ’n grashalmpie wat in ’n magtige rivier beland. Hulle sou baie trots gewees het as hulle ons met die grond gelyk kon vee. Maar julle moet vir die Here baie dankie sê. Hy het gesorg dat ons nie die onderspit delf nie. Die mense wat ons wou vernietig, het dit nie reggekry nie. Hy het ons lewe gespaar. Ons het soos ’n voëltjie uit ’n voëlwip uitgeglip. Die wip wat hulle vir ons wou stel, het gebreek. Nou is ons vry. Dit is die Here wat ons help, want Hy is die sterkste van almal. Hy het nie verniet die hemel en die aarde gemaak nie. Iemand wat die Here vertrou, is soos ’n rots wat jy met geen hyskraan of koevoet kan beweeg nie. Hy staan vas sonder om te beweeg. Jerusalem word deur berge omring. Dit beskerm sy inwoners. Net so bewaar die Here diegene wat Hom vertrou. Hy hou sy oog oor hulle. Wees gerus, die Here beskerm die mense wat Hom liefhet. Slegte mense wat die Here nie dien nie, sal nie God se kinders kan mislei nie. Hulle sal nie sy kinders kan ompraat om kwaad te doen nie. Here, wees goed vir goeie mense. Hulle is opreg. God straf mense wat aanhou om verkeerde dinge te doen. Hulle verdien om saam met kwaaddoeners uitgeroei te word. Mag die Here sy vrede vir julle gee! Toe die Here Israel uit die kloue van ’n vreemde volk gered het, was sy kinders baie bly. Vir ons was dit soos ’n droom wat waar geword het. Ons het aanmekaar gelag en gepraat, so bly was ons. Almal, selfs dié wat nie die Here dien nie, het dit raakgesien en gesê: “Die Here het wonderlike dinge vir sy kinders gedoen.” Ja, die Here het wonderlike dinge vir ons gedoen en ons was baie bly. Nou is ons weer in die nood. Here, keer asseblief ons situasie heeltemal om. U kan ’n droë woestyn in ’n pragtige blommeland verander. Vat so ons probleme heeltemal weg. Die Here kan hartseer in blydskap verander. Trane van pyn kan Hy in gelag van blydskap verander. Al werk ’n boer hard, is hy bly as hy ’n groot oes insamel. So verander swaarkry in blydskap. As die Here die huis nie bou nie, bou die bouers ’n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort. As die Here die stad nie oppas nie, help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie. Dit is ’n vermorsing van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly en jou morsdood te werk. Die Here gee vir almal wat Hy liefhet al hierdie goeie dinge in hulle slaap. Kinders is ’n wonderlike geskenk van die Here, hulle kom direk uit die Here se hand. Kinders in ’n huis maak dit vol vreugde, dit maak ouerharte vol blydskap! Hoe gelukkig is elke pa en ma wie se huis die vrolikheid van kinderstemme ken! Hulle hoef nooit bang te wees vir hulle vyande nie. Hoe gelukkig is jy wat die Here dien en eer, jy wat presies doen wat Hy sê! Jou harde werk sal elke dag vir jou ’n goeie oes oplewer. Jy is die gelukkigste mens op aarde, want God sorg dat dit goed gaan met jou. Jou huwelik sal een groot vreugde wees en jou kinders jou trots! Jou vrou en kinders sal soos ’n goeie oes op die land wees wat jou baie bly maak. Die Here is so ontsettend goed vir jou wat Hom vrees, jy staan in die sonskyn van sy goedheid! Mag die Here jou daar van die Sionsberg af oorlaai met sy goedheid, mag jy elke dag sien hoe goed dit gaan met almal wat Hom dien. Mag jy so oud word dat jy ook nog jou kinders se kinders kan sien grootword. God gee sy vrede aan almal in Israel! U kinders sê vir hulleself: “Reeds van kleins af is daar mense wat lelik met ons is. Van jongs af het hulle ons baie sleg behandel, maar hulle kan ons nie onderkry nie. Hulle het ons so geslaan dat dit gelyk het of ’n ploeg slote oor ons lyf oopgekrap het. Maar die Here tree reg op. Hy het ons gered van daardie mense wat Hom nie dien nie.” Here, mag almal wat U en u kinders nie liefhet nie, skaam word en padgee. Laat hulle verdwyn soos ’n grashalm wat in die son verskroei nog voor dit mooi opgekom het. ’n Mens trek dit uit en gooi dit weg. Dit is nie eens genoeg om jou hand vol te maak nie. As iemand by hulle verbyloop, sal hy nie eens sê: “Mag die Here goed wees vir julle” nie. Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here. Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor. As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie. Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U. Ek vertrou op die Here. Met my hele lewe vertrou ek op Hom. Ek hou vas aan alles wat Hy beloof het. Ek glo Hy sal doen wat Hy belowe het. Ek hou vas aan die Here, meer as wat ’n kleintjie aan sy ma vasklou. Ek sal U nooit los nie. Julle wat die Here liefhet, moet in Hom bly glo, want Hy het sy kinders lief. Hy vergewe hulle weer en weer. Hy sal al die dinge vergewe wat sy kinders verkeerd gedoen het. Here, ek dink nie ek is beter as ander mense nie. Verder doen ek nie dinge net om raakgesien te word nie. As ek iets nie kan doen nie, los ek dit. Mense probeer soms dinge doen sodat ander hulle op ’n troontjie kan plaas. Dit laat hulle soos God lyk. Ek is tevrede soos ek is. Ek is soos ’n babatjie wat veilig in sy ma se arms lê. Die wêreld kan maar vergaan, maar ek voel veilig en tevrede. Dit gebeur as jy op die Here vertrou. Stel jou hoop en vertroue op Hom. Hy sal jou altyd veilig laat voel. Moet asseblief nie vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het, vergeet nie, Here. Hy het mos vir die Here beloof: [3-5] “Ek sal nie rus voordat ek ’n tempel vir die Here, die magtige God, gebou het nie. Ek sal nie gaan lê en aan die slaap raak nie, tot ek ’n blyplek vir Jakob se God gebou het.” *** *** Ons het gehoor die verbondsark is in Efrata. Uiteindelik kry ons dit in die veld by Jaär. Laat ons na die woonplek van die Here toe gaan. Laat ons Hom daar gaan dien. Kom, Here, kom na u rusplek toe. Kom saam met u ark wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat u getroue mense van vreugde sing. Moenie die een vergeet wat U spesiaal aangewys het as koning nie, al is dit net ter wille van Dawid. Die Here het vir Dawid beloof dat een van sy kinders hom as koning sal opvolg. Die Here sal nie sy woord verbreek nie. Hy het gesê dat een van David se seuns altyd op die troon sal sit. As die nageslag van Dawid die Here getrou dien volgens die ooreenkoms wat hy met die Here gemaak het, sal sy kinders se kinders ook soos hy as koning heers. Maar dan moet hulle doen wat God vra. Die Here het Sion gekies as sy spesiale woonplek: “Dit is die plek waar Ek altyd wil rus. Hier wil Ek graag bly. Dis wat Ek wil doen. Ek sal vir Sion alles gee wat nodig is. Daar sal genoeg kos wees vir selfs die armstes. Die mense wat in die Here se huis werk, sal doen wat reg is, en die mense wat God getrou dien, sal van vreugde sing. Daar sal Dawid bly en net sterker en sterker word. Ek het hom spesiaal as koning aangestel. Hy sal soos ’n lamp vir die mense wees. Sy vyande sal in skaamte neersak terwyl hy net belangriker en belangriker word.” Hoe mooi, hoe wonderlik as broers en susters regtig vir mekaar lief is! Dit is soos baie duur parfuum wat iemand uit respek oor Aäron uitgiet; dit is soos duur olie wat oor Aäron se kop en klere loop. Dit is soos dou wat vroegoggend van die Hermonberg afloop tot op Sion. Broers en susters wat regtig vir mekaar omgee, word deur die Here geseën; elke dag beleef hulle sy goedheid, elke dag van die lang lewe wat Hy skenk. Almal wat die Here dien, kom sê vir Hom baie dankie. Laat almal wat selfs in die nag die Here dien, dit doen. Lig julle hande in gebed op terwyl julle in sy woonplek is, terwyl julle vir die Here baie dankie sê. Mag die Here, wat alles gemaak het, vir jou baie goed wees. Kom prys die Here. Julle moet vir Hom baie dankie sê, julle wat Hom dien. Julle wat die Here oral dien, kom prys Hom. Hy is ons God. Kom loof die Here, want Hy is vir ons goed. Kom sing liedere om Hom groot te maak. Dit is lekker om hardop oor Hom te praat. Die Here het lank terug vir Hom mense gekies. Hulle is Syne. Dit staan soos ’n paal bo water: die Here is ’n groot God, groter as alle ander gode. Hy doen wat Hy wil. Bo in die ruimtes, hier op die aarde, selfs in die see of op enige ander plek doen die Here wat Hy wil. Daar ver op die horison laat Hy die wolke opkom. Wanneer dit reën, laat Hy die weerligstrale rondblits. Hy laat die winde waai. Dit is die Here wat mag het oor lewe en dood. Voor Israel uit Egipte getrek het, het Hy die Egiptenaars se oudste seuns en vee laat doodgaan. Hy het daar wonderwerke laat gebeur voor die farao en sy werkers. Daarna het Hy ’n klomp volke voor Israel verslaan en baie sterk leiers soos Sihon en Og laat doodmaak. So ook al die konings in Kanaän. Toe het Hy aan sy volk ’n land gegee wat hulle s’n sou wees. So het sy kinders, die Israeliete, hulle eie eiendom gekry. Here, U sal nooit ophou bestaan nie. Vir altyd sal mense U grootmaak. Ja, die Here sal sorg dat sy mense reg behandel word. Hy sal vir elkeen wat Hom dien, ’n sagte plekkie in sy hart hê. Mense wat die Here nie dien nie, het hulle eie dooie gode. Dit kan geld of ander dinge wees wat waardevol lyk, alles dinge wat mense maak. Hulle lyk soos die ware Jakob, maar beteken net mooi niks. Dit is goed nagemaak. Dit lyk wel of hulle gode kan praat, maar hulle maak geen geluid nie. Verder lyk dit of hulle kan sien, maar hulle is stokblind. Dit lyk of hulle kan hoor, maar hulle reageer op geen geluid nie. Hulle is morsdood, want hulle haal nie eens asem nie. Mense wat sulke dooie gode maak om te aanbid is net so dood soos hulle handewerk. Daardie mense beteken niks, want hulle vertrou op dooie goed. Kinders van die Here, kom prys Hom. Mense in leiersposisies wat die Here dien, sê vir Hom dankie. Ook julle wat sorg dat alles in die kerk reg loop, kom prys Hom. Almal wat die Here getrou dien en aanbid, kom sê vir Hom dankie. Ons wens dat die Here oral geprys word waar mense Hom aanbid, want Hy is oral. Prys die Here! Loof die Here, want Hy is baie goed, sy liefde hou nooit op nie. Loof God wat hoog bo al die gode uittroon, sy liefde hou nooit op nie. Loof Hom wat baie sterker is as al die magtiges hier op aarde, sy liefde hou nooit op nie. Die Here het groot wonders gedoen, Hy alleen, sy liefde hou nooit op nie. Hy het die heelal met soveel wysheid gemaak, sy liefde hou nooit op nie. Hy het die aarde bo-oor die oseane uitgesprei, sy liefde hou nooit op nie. Hy het die hemelruim verlig, sy liefde hou nooit op nie. Die son hou wag oor die dag, sy liefde hou nooit op nie. Die maan en sterre hou wag oor die nag, sy liefde hou nooit op nie. Al die oudste seuns in Egipte het Hy met die dood getref, sy liefde hou nooit op nie. Hy het Israel daar tussen hulle gaan uithaal, sy liefde hou nooit op nie. Hy het Israel met groot krag tot binne-in sy hand opgetel, sy liefde hou nooit op nie. Hy het die Rietsee in twee geskeur, sy liefde hou nooit op nie. Hy het Israel kurkdroog daardeur laat stap, sy liefde hou nooit op nie. Maar Hy het Farao en sy leër in die see laat verdrink, sy liefde hou nooit op nie. Hy het sy volk deur die woestyn gelei, sy liefde hou nooit op nie. Die Here het magtige konings links en regs verslaan, sy liefde hou nooit op nie. Beroemde heersers is voor Hom weggevee, sy liefde hou nooit op nie. Hy het koning Sihon van die Amoriete verslaan, sy liefde hou nooit op nie. Hy het koning Og van Basan verslaan, sy liefde hou nooit op nie. [21-22] Hulle grond het Hy aan sy dienskneg Israel present gegee, sy liefde hou nooit op nie. *** Die Here het aan ons gedink toe ons swaargekry het, sy liefde hou nooit op nie. Hy het ons kom red uit die hand van ons vyande, sy liefde hou nooit op nie. Hy sorg vir almal, Hy laat ons leef, sy liefde hou nooit op nie. Loof God, Hy wat in die hemel bly, sy liefde hou nooit op nie. Ver van die huis af het ons gesit, eensaam by ’n rivier in Babilon. Daar was ons slawe in die vreemde. Ons het gehuil. Sonder ’n land en ons eie plek om die Here te aanbid het ons gehuil as ons aan die huis terugdink. Ons wou nie meer sing en musiek maak nie. Die mense wat ons gevang en so sleg behandel het, het ons gespot. Hulle wou hê ons moet vrolik sing en bly wees, maar ons kon nie. Hulle het geëis: “Sing ’n lied oor die Here se woonplek in Jerusalem!” Hoe kan ons liedere sing wat al die ou herinnerings terugbring? Dit is net nie dieselfde om die Here hier te loof nie. Ons is te ver van die plek af waar ons Hom altyd gedien en aanbid het. Ek sal Jerusalem, waar ons die Here aanbid het, nooit vergeet nie, al is dit nou ’n ashoop. As ek die stad vergeet, kan ek net sowel vergeet om my regterhand te gebruik. Dit sal nie gebeur nie. Mag ek vir altyd ophou praat as ek daardie plek vergeet waar ons die Here aanbid het. Niks maak my blyer as om daaraan te dink nie. Here, straf die mense wat ons kosbare tempel platgeslaan het. Hulle het ons besteel. Hulle het gesê: “Breek dit af; slaan dit plat tot op die grond.” O, julle mense van Babel wat ons plek verwoes het, die Here gaan julle ook verwoes. Julle verdien ’n swaar en wrede straf. Gelukkig is die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het. As iemand julle kinders se koppe teen die mure stukkend slaan, is dit julle verdiende loon. Ek sal die Here met my hele lewe prys. Ook al dien mense rondom my ander gode, sal ek U grootmaak. U sal ek loof en aanbid, want ’n mens kan U vertrou. U het u kinders baie lief. Omdat u Naam op die spel is, het U belowe om u kinders altyd lief te hê. Op ’n dag het ek tot U gebid. U het na my geluister en my gehelp. My lewe het verander, want U het my nuwe moed en krag gegee. Almal wat op die aarde regeer, sal U loof, Here. Laat hulle tog net hoor wat U sê en doen. Hulle sal sing oor wat die Here met mense doen. Niemand is belangriker as Hy nie. Niemand is groter as die Here nie. Sy grootheid lê daarin dat Hy mense raaksien en help wat dit nie self kan doen nie. Maar mense wat dink dat hulle beter as ander is, kyk Hy mis. Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie. U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hulle kloue. Die Here sal vir my sorg totdat ek die dag doodgaan. U liefde hou nooit op nie. Moet asseblief nie ophou om vir my goed te wees nie. Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word. U weet wat gaan hier binne-in my aan. Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie. Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees. Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie. U weet alles wat ek doen. Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend. U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie. As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my. Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie. Oral hou U my vas. En U lei my op u pad. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my. Lig en donkerte is vir U dieselfde. Niemand kan vir U iets in die donker wegsteek nie. Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein. En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen. God, raak tog ontslae van mense wat weier om U te dien. Julle wat ander wil doodmaak, moet van my af weggaan. Here, diegene wat sulke lelike dinge doen, is mense wat met U wil baklei. Ek wil niks met hulle te doen hê nie. Ek kan nie mense verdra wat nie na U wil luister nie. Mense wat teen U is, is ook nie my vriende nie. God, kyk of U my kan vertrou. Toets my gesindheid. Kyk of ek eerlik is. Help my op die regte pad. Hou my weg van al die verkeerde dinge. *** Here, red my asseblief van mense wat slegte dinge doen. Beskerm my teen mense wat alles met geweld wil regkry. Daar is mense wat net die hele tyd kyk wat hulle verkeerd kan doen. Hulle maak net die hele tyd moeilikheid. Al hulle praatjies maak hulle baie gevaarlik. Hulle is soos giftige slange. Hulle is reg om ander mense seer te maak met wat hulle sê. Beskerm my, Here, teen daardie mense wat U nie wil dien nie. Hulle wil my net kwaad aandoen. Help my asseblief teen daardie mense wat alles vir my wil verongeluk. Hulle konkel agteraf om my onder te kry, al moet hulle geweld gebruik. Mense wat dink hulle is beter as ander, probeer my aan die neus rondlei. Hulle wil my in die moeilikheid bring sonder dat ek dit verwag. Daarom maak hulle planne om my om die bos te lei. Ek het vir die Here gevra: U is my God. Help my asseblief, Here. Ek smeek U om my asseblief te help. Ek is U s’n, Here. U het al die krag om my te help. U beskerm my as ek in die moeilikheid is. Here, moenie U steur aan mense wat U nie wil dien nie. Moenie toelaat dat hulle met my maak wat hulle wil nie. Moenie dat hulle regkry wat hulle in die mou voer nie. Anders hou hulle net aan om te dink dat hulle beter is as ander mense. Laat hulle wat alles vir my wil verongeluk op hulle eie aansukkel. Gee dat hulle self deurloop onder die slegte dinge wat hulle in die mou voer, Here. Laat hulle die pyn en hartseer voel wat hulle vir ander beplan het. Mag die Here sorg dat hulle geknoei tot hulle eie dood lei; ja, hulle moet bly lê. Laat elkeen wat lelike dinge sê, nie regkry wat hy sê nie. Laat die slegte dinge wat hulle aan ander wil doen, hulle self tref. Die ongeluk moet hulle keer op keer ry. Ek voel gerus om te weet dat die Here vir die mense sal sorg wat hulp nodig het. Hy sal sorg dat mense reg teenoor hulle optree, want Hy self is die regter. Ja, Here, almal wat U liefhet, sal U prys, want U is groot. Elkeen wat eerlik en opreg is, sal saam met U lewe. Here, ek bid tot U. Help my asseblief gou. Luister na my. Help my as ek tot U bid. Ek hoop dat dit vir U aangenaam is om my gebed te hoor. My gebed is soos ’n rustige lied om vir U dankie te sê. Here, help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek sê. Keer my dat ek nie lus kry om slegte dinge te doen saam met mense wat U nie dien nie. Hulle stel net in hulleself belang. Hulle doen verkeerde dinge. Help my om nie saam met hulle slegte dinge te doen nie. Ek gee nie om as iemand wat die Here liefhet met my oor my verkeerde dade praat nie. Al maak dit my baie seer, weet ek dat hy dit uit liefde doen. Daarom sal ek luister as hy my waarsku of raad gee. Ek bid egter dat mense wat die Here nie dien nie, sal ophou met al die slegte goed wat hulle doen. Ek kuier nie eens by sulke mense nie. Daarom is ek baie bly om te hoor dat hulle mag gebreek is. Hulle bene sal oral rondlê soos grond wat omgeploeg is. Here, ek het U baie nodig. U beskerm my. Moet asseblief nie dat dinge vir my skeefloop sodat dit vir my voel of die laaste bietjie lewe uit my getap word nie. Beskerm my teen slegte mense wat my tot ’n val wil bring. Mense wat slegte dinge doen, probeer my op ’n skelm manier om die bos lei. Laat hulle wat U nie dien nie, in hulle eie slaggate trap. Laat hulle deur hulle eie geknoei ten gronde gaan. Maar ek, ek sal verder gelukkig lewe. *** Ek bid ernstig tot die Here. Ek pleit dat Hy my jammer moet kry. Ek kla by Hom. Ek sê vir Hom wat my probleme is. As ek moed opgee, sal U weet wat vir my die beste is. Mense wil my laat struikel en val. Mense het die lewe vir my moeilik probeer maak. Hulle wou hê ek moes misluk. Hulle help my nie. Niemand gee vir my om nie. As ek mense vra om my te help, maak hulle of hulle my nie ken nie. Niemand wil my help nie. Hulle vra nie eens hoe dit met my gaan nie. Ek bid tot U, Here. U is die enigste Een wat my beskerm. U is al wat ek in hierdie lewe het. Help my asseblief as ek vra. Self kan ek niks doen nie, want ek het niks krag nie. Bevry my van mense wat agter my aanloop om my kwaad aan te doen, want hulle is sterker as ek. Help my asseblief uit my moeilikheid uit, Here, sodat ek U kan prys. Ek is nou vasgevang soos iemand in ’n tronk. Maar u kinders sal saam met my u Naam grootmaak, omdat U my gehelp het. Here, help my asseblief as ek bid. Antwoord my tog as ek by U pleit om my te help. Luister asseblief na my gebed. U kan ek vertrou. U is goed vir u kinders. Moet asseblief nie sê dat ek skuldig is voor U nie. In elk geval, daar is niemand op aarde wat onskuldig voor U is nie. Selfs nie eens hulle wat U dien, is sonder sonde nie. Ook ek is skuldig. Mense wat my nie liefhet nie, wil my in die grond in trap. Hulle wil net hê dat dit met my sleg moet gaan. Hulle vat die lig uit my lewe weg. My lewe het vir my alle betekenis verloor. Ek het begin moed verloor. Ek was baie bang en benoud. Toe het ek onthou dat U van die begin af gewys het hoe sterk U is. Ek het nagedink oor hoe U die hele wêreld gemaak het. Ek kan nie sonder U klaarkom nie. Ek roep na U. Soos ’n dor stuk land niks is sonder water nie, so kan ek nie sonder U verder lewe nie. Help my asseblief tog gou, Here. Ek is besig om dood te gaan. Moet my nie ignoreer nie, anders gaan ek nog gouer dood. Elke dag wil ek hoor hoe U my liefhet, want ek vertrou U. Lei my asseblief op die regte lewenspad. Met my hele lewe is ek van U afhanklik. Red my van hulle wat my nie liefhet nie, Here. U beskerm my. Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het. Here, gee my krag om reg te lewe sodat U die eer daarvoor kry. Help my asseblief uit my nood uit. U tree mos reg teenoor u kinders op. Sit hulle wat my nie liefhet nie, asseblief op hulle plek omdat U my liefhet. Gee dat hulle wat nie van my hou nie, sal doodgaan omdat ek U dien. Ek wil vir die Here baie dankie sê. Hy beskerm my. Hy leer my hoe om oorlog te maak. Hy is goed vir my en beskerm my. Hy hou my veilig en help my as dit nodig is. By Hom voel ek veilig. Hy laat my mense aan my gehoorsaam wees. Here, wat is ’n mens dat U U aan hom steur? Die mens is soos ’n skaduwee. Sy lewe is nie lank nie. Here, kom tog na ons toe. Raak aan die berge sodat daar rook uit hulle trek. Laat u weerlig soos pyle slaan sodat u vyande in alle rigtings weghardloop. Red my van die spul vreemde mense wat net lieg en bedrieg, soos U iemand uit ’n magtige rivier sou red. Ek wil ’n lied sing wat ek spesiaal net vir U geskryf het, o God. Met musiekinstrumente wil ek u Naam grootmaak. U laat konings wen; U keer dat koning Dawid iets oorkom. Help my asseblief teen die klomp vreemde mense wat net lieg en bedrieg. Wees baie goed vir ons kinders. Laat ons seuns sterk word soos jong bome en ons dogters soos die mooiste pilare in die paleis wees. Laat ons skure vol wees van die oes en ons skape en bokke by die tienduisende aanteel en ons beeste baie kalwers hê. Mag ons vyande nooit ons stad inneem en ons as gevangenes daaruit weglei nie. Mag ons mense nooit in die stad skree omdat hulle daar bang is nie. Die volk met wie dit so gaan, is baie gelukkig. Ja, gelukkig is die volk wie se God die Here is. My God, ek sal U prys en u Naam altyd grootmaak. U regeer oor alles. Ek wil U elke dag prys. Ek wil nooit ophou om U vir alles dankie te sê nie. Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word. ’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie. Ouers vertel vir hulle kinders wat U gedoen het. Hulle prys U daaroor. Hulle prys U wanneer hulle vir mekaar vertel van die groot dinge wat U alles gedoen het. U regeer. Ek wil vertel hoe belangrik U is. U heiligheid straal uit U uit. Ek sal nadink oor al die wonderlike dinge wat U gedoen het. As hulle met verbasing praat oor hoe sterk U is, sal ek oor u grootheid praat. Mense sal dag en nag kan vertel van u goedheid. U het in die verlede gewys hoe lief U mense het. Mense sal van blydskap sing omdat U goeie dinge vir hulle doen. Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het. Alles wat U gemaak het, sal u lof besing, Here. Hulle wat U dien, sal U prys. Hulle vertel hoe ’n magtige koning U is. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie. Hulle wil hê mense moet weet hoe belangrik U is, hoe sterk en hoe groot. Alles waaroor U regeer, is vol glans en glorie. U regeer van altyd af. U sal ook vir altyd regeer. U heers oor almal op aarde. Die Here sorg vir almal wat seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. Die Here tree altyd reg op. In alles wat Hy doen, kan jy op Hom staatmaak. Die Here is by elkeen wat Hom dien en aanbid. Hy los niemand alleen wat Hom dien nie. Hy doen alles wat sy getroue kinders van Hom vra. As hulle om hulp vra, doen Hy iets daaraan. Hy verlos hulle uit hulle nood. Die Here beskerm elkeen wat Hom liefhet, maar almal wat Hom nie dien nie, sal Hy vernietig. Ek sal die Here prys. Mag alles wat lewe, Hom altyd loof, want Hy is die Here. Daar is niemand soos Hy nie. Kom prys die Here. Ja, jy moet die Here kom loof. Ek wil die Here met alles in my prys. Vol opgewondenheid wil ek vir my God liedere sing so lank as wat ek leef. Moenie op mense staatmaak nie. Jy kan dalk dink dat mense in hoë posisies jou sal kan help. Moenie glo nie. Mense bly maar net mense. ’n Mens is net van stof gemaak en leef net ’n kort rukkie. As hy doodgaan, word hy weer soos niks. Sy planne hou nie lank nie. Daarom kan jy nie op ’n mens staatmaak om jou te help nie. Hoor mooi, jy sal nie ’n fout maak as jy op die God van Jakob vertrou om jou te help nie. Hy het deur die geskiedenis gewys dat jy Hom kan vertrou. Iemand wat die Here as sy God vertrou, is ’n baie gelukkige mens. Onthou, die Here het al die mag in die wêreld. Hy het alles gemaak: die hemel, die aarde, die see, ja, alles wat leef en beweeg. Hy sal nooit dit wat Hy gemaak het, in die steek laat nie. Hy bly altyd getrou. Die Here sorg dat mense wat swaarkry, reg behandel word. Hy sorg dat mense genoeg het om van te leef. Hy haal mense uit die tronk. Die Here help mense met die grootste probleme. Hy maak mense gesond, al is hulle hoe siek. Die Here gee moed vir mense wat platgeslaan is; Hy tel hulle weer op. Die Here het sy kinders baie lief. Hulle wat verstoot word en nie voorregte het soos ander nie, kan op die Here vertrou. Hy sal vir hulle sorg. Maar mense wat hulle nie aan die Here steur nie, is in groot moeilikheid. Die Here is Koning oor alles. Hy regeer oor almal wat leef. Hy is jou God. Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Vertrou op Hom! By Hom is jy veilig. Kom prys die Here! Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê. Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op. In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur. Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring. Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is. Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal. Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Die Here help die mense wat hulp nodig het. Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie, moet weet dat daar groot probleme op hulle wag. Kom sing ’n lied om vir die Here dankie te sê. Sing vir ons God ’n lied met musiekinstrumente. Dit is Hy wat die wolke in die hemel laat opsteek. Hy bring die reën en laat die gras op die berge groei. Hy gee weiding aan die diere en kos vir die jong kraaie as hulle honger is. Die prestasies van ’n mens en die krag van ’n dier maak nie indruk op die Here nie. Die krag van bomme, die prestasies van geleerdes of die geheue van die slimmes beïndruk die Here nie. Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid. Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet. In Israel was daar baie redes waarom God se kinders Hom kon prys. Lank terug het sy kinders al gesê: Mense van Jerusalem, kom prys die Here. Gelowiges wat op die Sionsberg bly, kom sê dankie vir julle God. Hy het die stad beskerm. Hy het almal versorg wat binne-in die stad was. Hy sorg vir vrede onder julle. Hy gee vir almal meer as genoeg van die beste kos. Wanneer Hy iemand vra om iets te doen, word dit vinnig gedoen. Die sneeu wat Hy gee, is spierwit. Hy strooi die ryp egalig uit. Wanneer dit hael, lyk dit soos stukke ys wat iemand uit die hemel afgooi. Niemand kan oorleef in die ysige koue wat Hy gee nie. Hy hoef net ’n woord te sê, dan smelt al die ys weg. Wanneer Hy ’n warm wind daaroor laat waai, smelt dit sodat jy net water sien loop. Wat Hy wou hê Israel moes doen, het Hy vir hulle gesê. Vir Israel het Hy dinge gedoen wat Hy vir geen ander volk gedoen het nie. Die ander volke het ook nie sy wil geken nie. Kom prys die Here! Kom prys die Here. Alles in die hemel, kom sê vir Hom dankie. Kom prys Hom. Almal wat in die hemel bly, moet Hom loof. Al die duisende sterre, kom prys Hom. Loof Hom, son, maan en sterre wat lig gee. Alles in die verste ruimtes van die heelal, ver bokant die bloue hemel, kom loof Hom. Laat alles daar bo die Here vir sy grootheid prys. Hy het net ’n woord gesê, toe was alles daar. Vir elke ster, elke planeet in die hemel het Hy ’n spesifieke plek gegee. Sy natuurwette kan niemand oortree nie. Kom prys die Here hier van die aarde af. Kom, julle groot seediere en onstuimige vloedwaters. Kom, weerligte en hael, sneeu en miswolke, en al die stormwinde wat Hy met een woord gemaak het. Kom, berge en al die heuwels, vrugtebome en al die wilde bome, wilde diere en al die vee, kruipende diere en voëls. Kom, regeerders oor die aarde en alle volke, alle leiers en regters van die wêreld, jongmense, oumense en kinders. Mag almal die Here kom loof. Ja, Hy alleen is groot en belangrik. Ver in die hemel en ook hier op aarde kan almal sien hoe groot Hy is. Hy is so wonderlik dat woorde Hom nie kan beskryf nie. Van sy kinders maak Hy helde. Hy gee aan hulle mag. Al sy kinders wat naby aan Hom lewe, sal Hom daarvoor prys. Kom prys die Here! Kom prys die Here. Bring eer aan die Here in die byeenkoms van die gemeente. Sing vir Hom ’n lied wat jy spesiaal net vir Hom gemaak het. Sing saam met al sy kinders liedere om vir Hom dankie te sê. Al God se kinders moet bly wees oor Hom, want Hy het hulle gemaak. Gelowiges moet juig oor Hom, want Hy regeer oor hulle lewe. Hulle moet sy Naam prys deur te sing en te dans. Saam met pragtige musiek moet hulle Hom uit volle bors loof. Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status of belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help. Almal wat die Here getrou dien, moet opgewonde juig. Hulle moet met blydskap sing, selfs as hulle alleen is. God se kinders sê vir die Here dankie. As mense die Here nie dien nie, sal hulle met sy kinders te doen kry. Hulle is reg om mense te straf wat God nie eer nie. Sy kinders sal die goddelose leiers in die tronk stop, omdat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle dink hulle is te belangrik daarvoor. Almal wat die Here dien, wil graag ontslae raak van mense wat nie na die Here luister nie. En hulle sal dit regkry. Kom prys die Here! Kom prys die Here. Prys God. Aanbid Hom in sy woonplek op aarde, want Hy is heilig. Loof Hom. Hy is so groot, die wye hemelruim is net ’n stukkie van sy blyplek. Prys Hom omdat Hy so sterk is. Loof Hom, want sy grootheid kan jy op geen manier meet nie. Prys Hom met alle musiekinstrumente. Loof Hom met trompette, kitare en viole. Prys Hom met ’n instrument of deur te sing en te dans. Loof Hom deur snare te tokkel en ’n fluit te blaas. Simbale se klanke roep lof aan die Here uit. Loof Hom deur die suiwer klanke. Elkeen wat asemhaal, luister nou: Loof die Here. Kom prys die Here! Die boek Spreuke is in die tyd van Dawid se seun Salomo geskryf. Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is. Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland. Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook. Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede. So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê. Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke. ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier. As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê: [11-14] “Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.” *** *** *** Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is. Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie. ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg. Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel. Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe. Lewenswysheid is soos ’n predikant wat in die strate en die groot bymekaarkomplekke preek. Sy loop die stad plat en verkondig haar boodskap oral: “Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap? “Bekeer julle! Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef. Ek sal julle vertel hoe om geluk te vind. “Waarom luister julle nie as ek praat nie? Waarom steek ek die hand van vriendskap na julle uit en julle verwerp dit? Al my goeie raad oor die lewe het julle in die wind geslaan. Aan my woorde het julle julle nie gesteur nie. “Omdat julle, dommes, julle eie ondergang bewerk, sal ek julle nog eendag uitlag en met julle spot. As vrees julle beetpak, as paniek julle soos ’n magtige stormwind oorweldig, as ellende julle soos ’n onverwagse warrelwind tref, as angs julle deel word, sal ek met julle spot. “Dan sal julle skielik by my wil weet hoe om te leef, maar ek sal julle nie sê nie. Vinnig sal julle by my insig soek, maar niks kry nie. [29-31] “Omdat julle egte lewenskennis verag het, die Here nie liefgehad het nie, alle raad vir ’n gelukkige lewe in die wind geslaan het; daarom sal julle die vrot vrugte van julle verskriklike dade proe. Julle slim ou plannetjies sal julle nog walg. *** *** Dom mense loop hulle in die dood vas. Hulle is so selfversekerd, maar hulle word vernietig. “Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.” Jong vriend, indien jy na my wyse woorde oor die alledaagse lewe luister en my voorskrifte soos ’n kosbare skat binne-in jou bewaar, indien jy jou ore vir hierdie lewenswaarhede spits en goed oor alles nadink, indien jy na insig in die alledaagse lewe smag en meer kennis begeer oor hoe om te leef, indien jy heeltyd hierna soek soos ’n mens na kosbare silwer of na skatte soek, sal jy die Here se liefde begin verstaan. Jy sal weet hoe om wys en gelukkig te leef. Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry. Hy gaar arms vol wysheid vir die gelowige op. Dit is net vir ons bedoel vir wie die Here liefhet. Soos ’n skild sal dit ons teen slegte dade beskerm. Dit sal ons aanspoor om gelukkig te leef. Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree. Jy sal sommer lus wees om reg te leef. Dit sal vir jou lekker wees om daaroor na te dink. En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree. Wysheid sal jou van verkeerde dinge weghou en jou lewe verryk. Jy sal ook begin let op wat jy sê. Jy sal verstandig raak. Van sekere tipes mense sal jy wegbly, veral van diegene wat niks van lewensgeluk wil weet nie, hulle wat dit geniet om heeltyd verkeerde dinge te doen. Hulle loop op verkeerde paaie in die verkeerde rigting. ’n Wyse lewenshouding sal ’n jongman teen ’n los vrou beskerm, veral teen haar wat hy van geen kant af ken nie en wat hom met haar woorde wil probeer verlei. So ’n vrou het haar man en kinders verlaat en die huweliksooreenkoms voor God heeltemal vergeet. Wie haar besoek, ervaar iets van die dood. Wie met haar gemeenskap het, sink in ’n donker put weg. Hy sal geestelik sterf. Sy lewenskoers is hy vir altyd kwyt. Meng eerder met mense wat die Here liefhet, met mense wat weet hoe om gelukkig te leef. Opregte gelowiges sal die goeie van die aarde geniet. Hulle wat reg lewe, sal die lekker dinge van die lewe smaak. Dommes wat nie weet hoe om reg te leef nie, sal egter niks van hierdie goeie dinge ervaar nie. Hulle is ongelukkige mense. Jong vriend, luister na my raad. Dink mooi oor die alledaagse lewe na. Dink wat jy op die regte oomblik moet sê en wat jy moet doen, wie en wat jy eerder moet vermy. ’n Wyse manier van leef het groot waarde. Baie gelukkige dae, baie opwindende lewensjare, groot blydskap kom daaruit voort. Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Hou aan om reg te leef! Hierdie spreuke sal jou daarmee help. Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie. Dan sal die Here die goeie dinge van die lewe vir jou gee. En die mense sal ook van jou hou. Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. [6-7] Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. *** Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees. Dien die Here met jou talente. Gee aan die Here ook ’n goeie deel van jou geld. Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef. Jou lewe sal vol vreugde wees. Soms ervaar jy hartseer en teleurstelling. Soms is jy kwaad vir die Here. Moet Hom egter nooit in jou woede vloek of verwyt nie. Soos ’n goeie pa soms met sy geliefde seun raas, so maak die Here ook met ons. Hy raas met ons omdat Hy ons so baie liefhet. So help Hy ons om met nog groter wysheid en vreugde te leef. Iemand wat elke dag reg leef en met insig optree, se lewe is vol geluk. Die blydskap wat uit ’n wyse lewe straal, is baie kosbaar. Dit is baie meer werd as al die banke se geld en al die myne se goud, baie meer as die allerkosbaarste dinge wat jy graag wil hê. Nog ’n voordeel van ’n wyse manier van leef, is ’n lang lewe vol rykdom en eer. Dit bring baie aangename dinge. Dit bring vrede binne-in jou. Wysheid is soos ’n boom. Wie daaronder skuil, vind vreugde. Wysheid is die belangrikste in die lewe. Selfs God het alles met wysheid geskep. Met wysheid het God die aarde gemaak en die hemele met insig aanmekaargesit. Sy kennis het fonteine uit die dieptes laat opspring en het wolke reën gegee. Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen. Dié twee sal jou gelukkig maak. Hulle sal jou lewe versier. Dan sal jy ook veilig en beskut voel. Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees. Moenie vir ’n skielike krisis of ramp skrik nie. Dikwels is dit net bedoel vir slegte mense wat nie die Here liefhet nie. Jy weet mos die Here is altyd by jou. Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal jou beskerm. Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie. Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie. Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie. Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie. Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie. ’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend. Met ’n goddelose mens se familie gaan dit sleg, terwyl die Here iemand wat wys leef se huis met voorspoed, geluk en kinders oorlaai. Met hulle wat baie van hulleself dink, spot die Here. Hy lag lekker vir hulle. Hulle wat egter nederig is en uit sy hand leef, het Hy oneindig lief. Wyses ontvang in hierdie lewe eer terwyl dommes verneder word. Jong vriend, luister na ouer gelowiges met baie kennis van die lewe. Doen jou bes om die regte dinge te leer. Ek wil jou goeie raad vir die lewe gee, kennis wat jy nooit moet vergeet nie. Ek was ook eenmaal jonk en sonder kennis. My pa het my van die lewe vertel en gesê: “Bêre my woorde in jou hart. Dink altyd daaroor na. Dan sal jy werklik gelukkig leef. “Doen jou bes om elke dag meer wysheid en insig te kry. Moet tog nooit my woorde verwerp nie. “Moenie lewenswysheid los soos ’n slegte man partykeer ’n vrou los nie. Wees lief daarvoor soos ’n goeie man sy vrou liefhet. Dan sal jy reg leef. “’n Belangrike reël vir die lewe is om meer en meer van die regte soort kennis in die hande te kry. Dan sal jy meer op jou gemak voel. Jy sal weet hoe om in die alledaagse lewe op te tree. “Leef die Spreukeboek se wysheid uit. Lees dit elke dag en dit sal met jou goed gaan. Omhels dit soos ’n vrou, en jy sal soveel vreugde ontvang. “Spreuke se wysheid sal jou help om jou lewe so mooi soos ’n pragtige kledingstuk te maak, jou lewenstyl soos klere wat almal raaksien en bewonder.” Jong vriend, ek het jou nou die weg na ’n wonderlike lewe gewys, jou vertel hoe ’n gelowige moet leef. Aanvaar dit nou. Dan sal jy jare van groot lewensvreugde smaak. Omdat ’n mens so maklik kan struikel en die verkeerde kan doen, moet jy tog vashou aan hierdie reëls wat ek jou leer. Oordink dit, want dit kan vir jou ’n goeie lewe vol vreugde verseker. Moet tog nie soos slegte mense leef of soos hulle raak nie. Bly uit hulle pad uit. Draai weg van hulle en loop jou eie pad. Hulle kan mos nie vanaand slaap as hulle nie eers iets verkeerds gedoen het nie. Hulle lê wakker as hulle nie iemand vernietig het nie. Hulle is skoon slapeloos as hulle nie vandag iemand te kort gedoen het nie. Misdaad is vir hulle soos kos. Geweld is soos wyn waarna hulle smag. [18-19] Hulle lewe is een groot donkerte. Hulle kan nie sien waar om te loop nie. Boonop val hulle hulle stukkend oor al hulle booshede. Totaal anders is die lewe van iemand wat die Here liefhet. Dit is soos ’n skerp lig wat almal kan sien en wat net al hoe helderder word totdat dit uiteindelik heeltemal dag is. *** Jong vriend, luister baie mooi na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my lewenswysheid. Vergeet dit nie ’n enkele oomblik nie. Hou jou oë altyd op die spreuke se lewensreëls. Dink heeltyd daaroor na. Wie dit sy eie maak, sal vreugde ervaar, soveel dat dit selfs sy liggaam beter sal laat voel. Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed. Vermy dom praatjies en leuens en glibberige woorde. Dink mooi na oor alles wat jy sien. Kyk na die goeie dinge van die lewe. Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap. Jou manier van leef bepaal jou geluk! Jong vriend, luister nou baie mooi na my goeie raad. Leer uit my ervaring sodat jy reg kan leef en met insig kan praat. Pas op vir die los vrou. Aan die begin is haar woorde so soet en aanloklik soos heuning. Met haar mooiklinkende praatjies wil sy jou vir haarself inpalm. Na die opwinding bly daar egter net ’n bitter nasmaak oor. Haar bitter woorde is dan erger as gal, soos ’n skerp swaard wat jou wil verwoes. Haar manier van leef maak mense geestelik dood. Sy vernietig jongmans se lewe. Sy steur haar glad nie aan ’n gelukkige lewenstyl nie. Sy leef ’n lewe van totale ondergang. Jong vriend, luister na my woorde. Doen dit. Bly weg van so ’n vrou af. Moenie eens naby haar huis se deur kom nie, sodat jy tog nie jou mooi liggaam vir ’n ander een gee wat dit nie eens waardeer nie, sodat jy nie jou eer by iemand verloor wat jou nie eens respekteer nie, sodat vreemdes nie jou geld, waarvoor jy hard gewerk het, uitmors nie. As jy nie versigtig leef nie, kan jy sommer ernstig siek word. Op jou sterfbed sal jy dan van die pyn skreeu omdat jou liggaam deur siekte vernietig word. Jy sal ook hartseer wees. Jy sal besef dit tref jou omdat jy nie na goeie raad wou luister nie. Jy sal jouself begin verwyt omdat jy nie na jou ouers en baie ander wyse mense geluister het nie. Jou gedrag maak dat jy dan voor die hele gemeente en al die gelowiges verneder word. Wees eerder lief vir jou eie vrou. Drink van jou eie put en van jou eie fonteinwater. Laat joune joune alleen wees. [16-17] Moet dit nooit met vreemdes deel nie. Geniet die vrou van jou jeug. Laat sy jou verkwik, haar liefde jou vol vreugde maak. *** [18-20] En as jy soveel vreugde by jou eie vrou geniet, waarom nog die omhelsing van ’n los vrou soek? Wat kan sy jou gee wat jou eie vrou nie kan nie? *** *** Elkeen van ons se lewe lê oop voor die Here. Hy ken ons doen en late. Verkeerde dade vang ’n mens in aaklige strikke vas. Sonde is soos ’n tou wat jou so vasbind dat jy nooit weer los kan kom nie. Uiteindelik sterf jy omdat jy sonder dissipline geleef het. Jou dwase optrede sal jou jou lewe kos. As jy vir iemand borg gestaan het, is jy dom. Jy het ’n groot geldlas op jouself gelaai. As jy ’n ooreenkoms te maklik gemaak het, jou handtekening te vinnig op papier geplaas het, is jy dom. Deur jou woorde en dade word jy gevang. Jy word ’n gevangene van harde besigheidsmense. Probeer so vinnig moontlik uit hierdie knyptang kom. Moenie eens gaan slaap nie. Steek jou trots in jou sak en gaan praat dadelik met daardie mense. Pleit. Soebat. Veg. Hou aan soos ’n wildsbok in ’n strik en ’n voëltjie in ’n voëlvanger se net, totdat jy vry is. Luiaard, gaan leer by die mier hoe om te werk. Sonder ’n baas wat hom moet dryf, ’n toesighouer wat sy vordering moet dophou of ’n bestuurder wat sy program moet reël, werk hy dag en nag. Sonder enige druk begin die miertjie al in die somer kos vir die winter opgaar. Tydens oestyd werk hy dag en nag om kos in die landerye te versamel en huis toe te dra. Luiaard, hoe lank gaan jy nog so sit en niksdoen? Of tot watter tyd in die oggend lê en slaap? Jy sal nog laat by die werk aankom, daar rondsit of lyf wegsteek, dan roep die baas jou. Jy kan jou werk verloor. Dan sluip die armoede jou lewe so ongemerk binne soos ’n skelm. Jy sal nie ’n verhoging kry nie. Dan sal armoede jou lewe so ernstig bedreig soos ’n gewapende man. Daar is ’n mens aan wie jy net nooit ’n vat kan kry nie. Hy praat nou sus en later so. Sy woorde is bedrieglik. Jy kan nooit daarop peil trek nie. Met die trek van sy oë, die geskuifel van sy voete en die wys van sy vingers lei hy mense om die bos. In sy hart bedink hy heeltyd skelm planne. Waar hy is, is daar altyd rusie. ’n Skielike ramp sal hom nog tref. In ’n oogwink sal hy byna vernietig word. Hy sal nooit weer regkom nie. Kyk, daar is ses dinge waarvan die Here niks hou nie, sewe dinge wat Hy haat. Oë wat hoogmoed weerkaats, ’n tong wat leuens vertel, ’n hand wat ander se ondergang bewerk, ’n hart wat net slegte dinge dink, voete wat haastig na die kwaad toe hardloop, ’n vals mens wat na elke asemteug net leuens uitasem, en ’n rusverstoorder wat die liefde tussen mense wegvat. Jongman, jou ouers se opvoeding is belangrik. Hou vas aan die reëls wat jy by jou pa gekry het. En jou ma se lesse moet jy nooit vergeet nie. Dink gedurig daaraan sodat jy dit nooit sal vergeet nie. Of hang dit soos ’n hangertjie om jou nek sodat jy dit altyd sal onthou. Jou ouers se opvoeding sal jou help om gelukkig te leef. Wanneer jy gaan slaap, sal hierdie lewenswyshede jou nie verlaat nie. As jy wakker word, sal dit jou weer opnuut wys hoe om reg te leef. Lesse oor die lewe is soos ’n lamp. ’n Goeie opvoeding is soos ’n lig wat jou wys hoe om reg te leef. Dissipline is die deur tot ’n beter en gelukkiger lewe. Al hierdie spreuke moet jou teen ’n gevaarlike vrou se verleiding beskerm, jou teen haar sappige en verleidelike woorde oppas. Moenie deur haar mooi lyf oorweldig word nie. En moenie dat haar mond en oë jou verlei nie. Vir ’n prostituut is kos- en huurgeld voldoende betaling. Vir die vrou van ’n ander man gaan jy egter met jou lewe betaal. Om by iemand te slaap met wie jy nie getroud is nie, is gevaarlik. Kan ’n mens ’n vlam teen jou druk sonder dat jou klere brand? Kan ’n mens oor gloeiende kole loop sonder dat jou voete verbrand? Wie ontoelaatbare seks met iemand anders se vrou het, speel met vuur. Iemand wat so iets doen, gaan in groot moeilikheid beland. As ’n dief steel om sy hongerkrampe te stil, dink hy hy het ’n goeie rede. Maar as hy gevang word, moet hy alles teruggee. Hy moet ook vir alle skade betaal. Geen man of vrou wat rondslaap, sal ook die skuld van hulle daad kan ontglip nie. Wie by iemand anders se vrou slaap, is baie dom. Hy vernietig homself en alles wat vir hom dierbaar is. Hy sal verneder word en groot skade ly. Niemand sal hom vergewe nie, veral nie die vrou se man nie. Haar man se jaloesie sal hom rasend maak. Hy sal wraak neem. Geen bedrag om die saak te skik of ’n groot geskenk sal hom tevrede stel nie. Jong vriend, onthou wat ek jou oor die lewe geleer het. Bêre my voorskrifte in jou gemoed. Leef daarvolgens en jy sal gelukkig wees. Laat my voorskrifte vir jou so kosbaar soos die lewe self wees. Bind dit soos ’n stukkie lint aan jou vinger. Graveer dit so diep in jou hart dat jy dit nooit vergeet nie. Maak die spreuke se wysheid so jou eie dat dit vir jou soos ’n geliefde suster sal wees. Word met die spreuke se voorskrifte so bekend soos ’n mens ’n familielid baie goed leer ken. Dan sal dit jou teen die los vrou beskerm, teen die soet, verleidelike woorde van ’n vreemde vrou. Op ’n dag het ek by my venster gesit. Deur die kantgordyn het ek ’n klomp mense gesien. Hulle was dom. Hulle het nie geweet hoe om reg en gelukkig te leef nie. Onder hulle was daar veral een jongman. Hy was nog dommer as die ander. Hy het opgetree asof hy nie verstand het nie. Net voordat dit heeltemal donker was, het hy ongemerk na die straathoek toe gestap. Dit was die plek waar daar altyd ’n vrou gestaan het. Hy wou nog vinnig met die trappe na haar huis opdraf toe die vrou hom sien. ’n Mens kon aan haar kleredrag sien sy is ’n straatvrou. Sy was listig, slu en geslepe. Haar huis het te klein vir haar geword. Sy moes net uit. In die strate, op die markpleine en elke straathoek het sy mans ingewag. Sy het die jongman vriendelik nader geroep. Sy sou alles doen om sy weerstand te breek. Haar strategie was fyn beplan, alles netjies uitgewerk. Sy vertel hom hoe sy vroeër die dag by die tempel was. Sy het geoffer en haar geloftes betaal. ’n Deel van die offervleis moes sy dié aand saam met ’n ander gelowige geniet. En die jongman was net die regte een. Hy moes by haar gaan eet. Hoe kon hy weier? Alles lyk dan so goed en reg. Toe die jongman nog weifel, vertel sy hom van haar beddeken. Dit was nou ’n pragstuk. Kleurryk en van Egiptiese linne. Hy moes dit net sien. Boonop het sy die bed met lekkerruikgoed bestrooi. Daar is geen uitkomkans nie. Hy moes gaan kyk. In die kamer kyk hy angstig rond. Dalk is haar man daar. Sy stel hom egter gerus: “Moenie bang wees nie. My man is nie hier nie. Hy is ver weg op ’n sakereis en sal nie gou terugkom nie.” Hulle praat nog so, toe sy dit reguit sê: “Kom ons neem ons kans waar en slaap saam. Ons kan mekaar se liggame geniet, mekaar liefhê. En daar is geen haas nie. Ons kan tot vroegoggend aanhou.” Die jongman het toegegee. Sy het hom oortuig. Haar stroperige woorde het hom verlei. Sonder om ’n oomblik verder te dink, doen hy wat sy sê. Dit is verskriklik. Hy is soos ’n bees wat slagpale toe loop, soos ’n voëltjie wat oopoë in ’n lokval instap. Hy kom nie agter dat sy lewe op die spel is nie. Soos die ringe om haar voet word hy stadig maar seker vasgeketting. Soos ’n koeël iemand se liggaam deurboor, so sal hierdie vrou sy lewe vernietig. Jong vriend, luister nou mooi na wat ek sê. Neem my woorde ernstig op. Moet nooit agter haar aanloop nie. Moet nooit na haar huis toe gaan nie. Sy het al baie mans verlei. Vandag is hulle spyt daaroor, want haar huis is soos die dood. Daar word jou lewe geheel en al verwoes. Jong vriend, dit is nie die moeite werd nie. Iemand wat reg leef, is ’n getuienis. Om reg te leef is soos ’n goeie vrou. Waar sy gaan, sien mense hoe goed en mooi sy is. Oral vertel sy hoe die wysheid jou kan help. Jy sien haar by opdraandes staan. By stopstrate waar die verkeer stadig vloei. By die ingange van stede waar hordes mense verbygaan. By die deure van huise en woonstelle. Oral sê sy dieselfde dinge: “Mense, hoekom leef julle so dom? Word slim. Kry insig in die lewe. Lewe gelukkig. Luister na die goeie dinge wat ek vir julle wil sê. Dit is woorde wat werklik iets aan jou lewe kan doen. Elke woord is die waarheid, want ek haat leuens. My woorde gee jou ’n goeie kennis van die lewe. Daar is werklik niks kroms of skeefs daaraan nie. Geen geheime agendas, magspeletjies of wat ook al nie. Net egte lewenswaarhede. Gaan vra maar vir hulle wat reeds wys leef en gelukkig is. Hulle sal weet my woorde is waar. “My lewensreëls is baie meer werd as geld. Dit wat ek jou van die lewe wil leer, is baie kosbaarder as aardse skatte. My goeie raad vir ’n gelukkige lewe is baie meer werd as jou peperduur juwele. Dis kosbaarder as enigiets wat jy ooit kan begeer. “Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word. “Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here. Wie Hom liefhet, haat dinge soos om te veel van jouself te dink. Wysheid verag ’n verkeerde manier van leef en praat. “Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie. Konings gebruik dit om te regeer, staatspresidente maak goeie wette daarmee en regters sorg dat die regte besluite geneem word. “Wie wysheid liefhet, is gelukkig. Wie daarna smag om reg te leef, sal dit regkry. Wie wys leef, kry rykdom en eer, voorspoed en sukses. Die voordele van die regte manier van leef is onpeilbaar groot. Selfs die suiwerste goud en die duurste silwer kan dit nie koop nie. “Wysheid moet oral in mense te sien wees. Tree daarom in elke lewensituasie reg op. Behandel alle mense billik en reg. Dan sal dit met jou baie goed gaan. Jy sal ’n ryk mens wees.” Wysheid is baie oud. Neem dit dus ernstig op. Voorskrifte vir die regte manier van lewe is baie oud. Dit kom uit die gryse verlede. Riglyne om reg te leef, die regte dinge op die regte tyd te sê, kom al van die skepping af. God het die wysheid heel aan die begin van die tyd gemaak, voordat Hy nog enigiets anders gemaak het: in die begin, nog voordat die aarde daar was, is die wysheid al netjies aanmekaargesit toe daar nog geen oseane was nie, toe daar nog geen fonteine was nie, was die wysheid al daar voordat die berge gemaak is, voordat die heuwels daar was, voordat Hy die aarde en die velde gemaak het, voordat die eerste stoffies van die aarde daar was, het die wysheid al bestaan. Toe Hy die hemelruim gevorm het, toe Hy die waters se grense bepaal het, toe Hy die wolke hulle vaste plek gegee het, toe Hy die fonteine onder die aarde geskep het, toe Hy vir die see grense gestel het (sodat die waters hulle plek sou ken), toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het, was die wysheid al lankal daar. Wysheid was vir God soos ’n lieflingskind. Dag vir dag het Hy haar geniet. Soos ’n vrolike, huppelende kind het die wysheid die hele aarde vol gespeel. Op ’n dag het die wysheid met Adam se kinders kennis gemaak. Tot vandag toe geniet sy hierdie vrolike verhouding met sy nageslag. Wysheid is oud en baie belangrik. Luister daarom na al haar voorskrifte. Maak dit alles jou eie. Dit is die moeite werd. Neem elke stukkie wysheid ernstig op. Wie elke dag reg wil leef, is baie gelukkig. Wie elke dag probeer om die regte dinge te doen en te sê se vreugde ken geen perke nie. Wie die wysheid sy eie maak, het die lewe gevind. Die Here is lief vir hom. Wie die rug vir die wysheid draai, vernietig homself. Wie dit haat, is al klaar dood. Wysheid het vir haar ’n mooi, groot huis gebou. Aan die agterkant was daar ’n groot onthaalarea met sewe pragtige pilare. Met die huis se inwyding het sy ’n groot partytjie gehou. Daar was baie kos. Die beste wyn is uit die kelders geneem, die tafels is pragtig gedek en met wonderlike kosse oorlaai. Toe alles gereed was, het Wysheid haar bediendes gestuur om die gaste te gaan haal. Veral by die woonbuurte waar baie mense gebly het, het hulle die mense genooi. Wysheid se uitnodiging was duidelik: “Kom, almal wat nie weet hoe om reg te leef nie. Kom, almal wat geen insig in die lewe het nie. Kom geniet in oorvloed die goeie dinge wat ek jou bied. Los jou dom manier van lewe. Laat ek jou leer hoe om gelukkig te leef.” Dink mooi hoe jy iemand wat met God spot, moet antwoord. As jy hom op sy foute wys, kan hy jou verneder. As jy hard met hom praat, kan hy jou seermaak. Hy kan jou begin haat, jou groot skade aandoen. ’n Gelowige is heeltemal anders. Wys jy hom mooi op sy foute, sal hy jou liefhê. Gee hom goeie raad, en hy verstaan die lewe beter. Leer hom om reg te lewe, en hy ken groot geluk. Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger. Dus, as jy elke dag op die regte manier leef, is die lewe wonderlik. Maar as jy die wysheid verwerp, is die lewe sleg. Anders as Wysheid is Dwaasheid ’n verskriklike verleentheid. Sy is dom. Raserig. ’n Regte flerrie. En van ’n gelukkige lewe weet sy net mooi niks nie. Haar huis is op die besigste plek in die stad. Lui-lui sit sy heeltyd voor haar huis. Elke man wat verbystap, roep sy nader. Ook goeie jongmans probeer sy verlei. Vir almal sê sy dieselfde ding: “My huis is net die regte plek vir dommes, vir mense wat niks van ’n gelukkige manier van leef weet nie. Dis tog so lekker om dinge te doen wat verkeerd is. Soos om water of brood te steel. Daarom is skelm verhoudings so lekker! Almal is in my huis welkom.” Wie Dwaasheid besoek, vernietig sy mooi lewe. Haar huis is soos die dood. By haar kry die dood ’n greep op jou, slaan sy haar aaklige kloue in jou in, sleep sy jou stadig maar seker die graf in. ’n Gelowige kind maak sy ouers gelukkig. ’n Kind wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak hulle hartseer. Geld wat oneerlik verkry is, bring net verdriet. Eerlike optrede maak ’n mens gelukkig. Die Here sorg vir sy kinders. Hy gee kos vir dié wat honger is. Die brandende begeertes van slegte mense word nooit waar nie. Wie lui is, word gou arm. Wie hard werk, het geld vir kos en klere. Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid. Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart. Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet. ’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid. Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende. Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak. ’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd. Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings. Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid. ’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende. ’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel. Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf. Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang. Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim. ’n Gelowige se woorde is kosbaar. Dit kan baie vir mense beteken. ’n Dwaas se woorde beteken niks. Hy het geen begrip vir die regte manier van lewe nie. Sy gepraat lei mense net in nog dieper ellende in. As die Here vir ons goed is, ervaar ons arms vol geluk. Dit kom nie uit onsself nie, maar net van Hom. Ander mense sal dit ook in ons lewens kan sien. ’n Dwaas se lekkerste tydverdryf is om verkeerde dinge te doen, dinge te sê wat seermaak, mense se lewens te vernietig. Maar die gelowige doen wat reg is. Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie. Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel. ’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het. [31-32] ’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks. Dit walg die Here wanneer besigheidsmense oneerlik is, wanneer produkte swak en pryse buitensporig is. Eerlike transaksies maak Hom gelukkig. Mense wat dink hulle is beter as ander, word uiteindelik verneder. Mense wat nie so baie van hulleself dink nie, verstaan die kuns van die lewe. Vir mense wat die Here baie liefhet, is die lewe makliker. Hulle wat Hom nie ken nie, word deur valshede verwoes. Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered. ’n Gelowige vir wie die Here ’n werklikheid is, leef reg. Slegte mense se verkeerde dade verwoes hulle. ’n Gelowige se verhouding met die Here help hom om krisisse te oorleef. Ongelowiges is die gevangenes van hulle eie begeertes. Wanneer ’n ongelowige doodgaan, sterf hy sonder enige hoop; al die drome en verwagtings wat hy lewenslank gekoester het, is dadelik daarmee heen. Hulle wat die Here ken, word in moeilike tye gehelp. Ongelowiges raak net meer en meer in hulle probleme verstrik. ’n Ongelowige verwoes ander met sy woorde. ’n Gelowige wat die lewe ken, se woorde help ander wat in die moeilikheid is. As dit met die gelowige goed gaan, is almal baie bly. As ’n slegte mens doodgaan, klink daar oral uitroepe van blydskap op. Wanneer die Here ’n gelowige voorspoedig maak, trek baie mense voordeel uit sy rykdom. ’n Slegte mens se woorde en dade kan ’n hele gemeenskap laat ly. Iemand wat ’n vriend in die openbaar verneder, is ’n hartelose mens. Iemand met ’n fyn aanvoeling vir ander sal eerder swyg. Iemand wat skinderstories loop en versprei, lap ander se geheime uit. ’n Man met integriteit hou ’n geheim vir homself. Waar kennis van die lewe ontbreek, gaan ’n volk onder. ’n Goeie regering se krag lê in sy kundige leiers. Iemand wat sommerso vir ’n vreemde borg staan, kan finansieel swaarkry. Hy wat dit haat om borg te staan, se geld is veilig in die bank. Vir ’n vrou met integriteit is haar goeie naam belangrik. Vir roekelose mense wat niks vir ander omgee nie, is geld die belangrikste van alles. Iemand wat vir ander mense goed is, sal self die vrugte daarvan pluk. Iemand wat niks vir ander omgee nie, vernietig homself. ’n Skurk se optrede bring min lewensvreugde. Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees. Wie die Here opreg dien, ervaar die lewe in al sy volheid. Wie verkeerde dinge doen, is dood, al haal hy nog asem. Mense wat net aan verkeerde dinge dink, maak die Here baie kwaad. Hy is baie gelukkig met hulle wat reg leef. Niks staan vaster as ’n slegte mens se straf nie. ’n Gelowige se nageslag sal gelukkig wees. Iemand sonder insig en die regte lewenstyl is soos ’n vark met ’n goue ring. Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges se drome lei tot frustrasie en ellende. Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer. Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het. Wie nie respek vir die gemeenskap se belange het nie, word verstoot. Wie die nood van die gemeenskap raaksien, word deur almal geëer. Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes. Wie dink hy kan op sy geld vertrou, sal wreed ontnugter word. Wie in die Here glo, gaan van krag tot krag. Wie sy huisgesin te na kom se lewe sal leeg en sinloos wees. ’n Dom mens wat nie weet hoe om reg te lewe nie, sal nog vir ’n wyse werk. Die vrug van die geloof is die lewe in al sy volheid. ’n Wyse verstaan die honger en die nood van ander. As selfs ’n gelowige hier op aarde ly, hoeveel te meer nie ’n goddelose en ’n sondaar nie. Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom. Die Here hou baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. Maar hulle wat heeltyd slegte dinge dink, verwerp Hy. Niemand kry iets reg uit slegte dade nie. Slegte dinge maak van jou ’n ongelukkige mens. Die gelowiges staan vas. Hulle is gelukkige mense. ’n Goeie vrou beteken vir ’n man verskriklik baie. Sy versier sy lewe soos ’n mooi kledingstuk. Iemand wie se vrou ’n skandemaker is, se lewe is nag. Sy is soos ’n ongeneeslike siekte. Gelowiges dink heeltyd hoe om reg te lewe. Ongelowiges se raad is baie gevaarlik. Goddelose mense se woorde probeer jou in ’n lokval lei. Dit wil jou seermaak. Maar gelowiges se insig in die lewe bevry jou van al hierdie strikke. Ongelowiges gaan dood en dit is verby met hulle. Maar ’n gelowige se lewe het groot betekenis. ’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle. Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees. ’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf. Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens. Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad. ’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit. Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe. Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig. Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in. ’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood. Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring. ’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees. ’n Slim jongmens vergeet nie sy ouers se opvoeding nie. ’n Domme laat hom deur niemand leer nie, selfs al dreig jy hom. ’n Gelowige se woorde kan baie vir ander mense beteken. Hy trek self ook voordeel daaruit. Slegte mense kan nie genoeg van geweld kry nie. Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid. ’n Luiaard smag na baie dinge, maar hy kry niks daarvan nie. Iemand wat hard werk, het kos en klere. Hy het oorgenoeg om van te leef. ’n Gelowige haat alles wat sleg is. ’n Slegte mens tree walglik op. Sy lewe stink van al die vieslikhede. Die regte manier van leef beskerm die gelowige teen verkeerde dinge. Sonde vernietig ’n booswig se lewe heeltemal. Baie mense maak asof hulle ryk is. Eintlik is hulle brandarm. Ander leef nederig terwyl hulle baie geld in die bank het. Rykdom help baie. As jy geld dringend nodig het, is dit beskikbaar. Armoede is sleg, want dit maak die arme weerloos. Hy is altyd aan ander se genade uitgelewer. ’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand. Dit is soos ’n lamp wat al hoe dowwer brand. Mense wat altyd beter weet, beland maklik in rusies. Gelowiges luister graag na ander en neem hulle standpunte in ag. Kitsrykdom sonder harde werk hou nie lank nie. Wie bietjie vir bietjie spaar, word ryk. Drome wat nie waar word nie, bring hartseer. ’n Wens wat waar word, maak die lewe die moeite werd. Wie die Here se woord verwerp, vernietig homself. Wie dit sy eie maak, is ’n gelukkige mens. Mense wat die lewe ken, kan jou baie leer. Hulle lewenswysheid is ’n onuitputlike bron van kennis. Wie dit sy eie maak, word baie ellende gespaar. Lewenswysheid maak dat almal van jou hou. Ongelowiges gaan onder. ’n Slim mens dink voordat hy iets doen. ’n Dom mens weet nie wat hy doen nie. Almal sien en hoor hoe dwaas hy is. ’n Slegte boodskapper vergeet maklik wat hy moet sê. Mense word dan baie kwaad vir hom. ’n Goeie boodskapper se woorde maak mense gelukkig. Wie hom nie steur aan die voorskrifte vir ’n gelukkige lewe nie, word gou arm. Skande op skande is sy lot. Diegene wat na goeie raad luister, word deur ander gerespekteer. Dit is lekker as ons ons ideale bereik. Slegte mense bereik niks nie, want hulle sukkel om hulle verkeerde dade te los. Wie dikwels in die geselskap van gelowiges is, leer self ook met die tyd om reg op te tree. Wie altyd net met ligsinniges en ongelowiges meng se lewe is leeg. Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed. Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het. Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is. ’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek. ’n Mooi lewe kan deur dom optrede vernietig word. Dis soos Wysheid wat ’n mooi huis met moeite bou. Dan kom Dwaasheid en breek dit af. Wie wys leef, het die Here reg lief. Mense wat heeltyd die verkeerde dinge doen, het Hom verwerp. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby. Sy woorde bring hom tot ’n val. ’n Wyse is versigtig met sy woorde. Dit hou hom uit die moeilikheid. Sonder diere is jy arm. Met min diere kan jy al ’n lewe maak. ’n Betroubare mens se woord kan jy glo. Glibberige mense blaker leuens uit. ’n Dom mens soek tevergeefs na wysheid. Hy weet nie eens waar om te begin nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Hy weet waar om wysheid te vind. Bly uit ’n dwaas se pad. Hy weet nie hoe om reg te leef nie. Luister eerder na iemand wat die lewe ken. Iemand is wys wanneer hy die lewe wil verstaan. Dwases het geen wysheid nie. Hulle leefstyl wys hoe dom hulle is. ’n Ongelowige voel oor niks skuldig nie. ’n Gelowige geniet God se guns. Elke mens het sy eie swaarkry. Niemand weet daarvan nie. Vreemdes weet ook nie wat hom bly maak nie. [11-12] Op die oog af kan iemand baie suksesvol wees. Maar uiteindelik eindig alles in ellende. *** Selfs in iemand se lag word pyn gehoor. Blydskap kan ook in smart verander. ’n Slegte mens word aan die gang gehou deur sy slegte woorde en dade. ’n Gelowige pluk die vrug van die regte manier van lewe. ’n Dom mens weet nie wat reg of verkeerd is nie. Hy glo sommer enige ding. ’n Gelowige toets alles wat hy hoor. Hy let ook fyn op sy manier van lewe. ’n Gelowige let noukeurig op sy gedrag. Hy bly weg van verkeerde dinge af. ’n Dwaas gooi maklik alles waarin hy glo oorboord. ’n Humeurige mens doen en sê die verkeerdste dinge. ’n Glibberige mens en sy slinkse plannetjies word gehaat. ’n Mens wat nie weet hoe om reg te leef nie, se lewe is leeg. Lewenswysheid maak jou gelukkig. Slegte mense sal nog eendag die gelowiges se leefwyse bewonder. Hulle sal die gelowige se insig in die lewe begeer. ’n Arme se bure wil niks met hom te doen hê nie. Baie mense wil graag vriende van die rykes wees. ’n Sondaar is iemand wat sy naaste sleg behandel. Iemand wat vir die armes goed is, ervaar onbeskryflike geluk. Wie net slegte dinge dink, raak naderhand die pad heeltemal byster. Diegene wat net goeie dinge wil doen, ontvang baie liefde en ondersteuning. Harde werk het sy voordele. Praatjies bring jou nie ver nie. Blydskap en voorspoed is die kroon op die regte manier van lewe. Domkoppe se manier van leef bring net droefheid en teëspoed. ’n Betroubare getuie kan mense uit groot moeilikheid help. ’n Liegmond verwoes lewens. Wie die Here liefhet, voel veilig. Selfs sy eie kinders word beskerm. Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein. Dit maak van jou ’n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning. ’n Leier se krag lê in sy ondersteuners. Sonder ondersteuners beteken hy niks nie. Iemand wat reg leef, is geduldig. ’n Vinnige humeur rig oneindige skade aan. Kalmte en vrede is baie goed vir jou gesondheid. Slegte drange en luste is soos ’n vernietigende siekte. Wie die arme se nood miskyk, beledig die Here. Wie lief en goed is vir ander, eer Hom. Goddeloses leef en sterf sonder hoop. Gelowiges is tot die dood toe veilig in die Here. ’n Gelowige koester wysheid. Dommes dink nie eens daaraan hoe om reg te leef nie. ’n Mooi lewe maak jou gesin, jou familie en jou volk gelukkig. Verkeerde dinge bring hulle in verleentheid. ’n Werkgewer beloon sy werknemer vir goeie diens. Afskeepwerk en bedrog lei tot afdanking en armoede. ’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend. Gelowiges se woorde getuig van kennis. Dommes weet niks van die lewe nie. Hulle praat net onsin. Die Here weet wat mense doen. Hy sien al die goeie dinge en al die ongeregtighede raak. Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek. ’n Dwase mens verwerp sy ouers se opvoeding. ’n Slimme maak erns met dit wat hulle hom geleer het. ’n Gelowige se rykdom is sy gesin. ’n Slegte mens se skatte bring hom geen geluk nie. Na ’n wyse man kan jy altyd luister. Sy woorde is vol lewenskennis. Dommes dink net aan slegte dinge. ’n Slegte mens se godsdiens is oppervlakkig. Die Here haat sy skynheiligheid. ’n Gelowige se gebed is vir die Here wonderlik. Die Here haat die ongelowiges se slegte dade. Hulle wat opreg leef, het Hy sommer baie lief. Wie die Here verlaat, voel sy straf. Wie teregwysing haat, is al klaar dood. Die Here ken die lewe na die dood baie goed. Hy weet wat in die doderyk gebeur. So ken Hy ook alles wat ons beplan. Niks is vir Hom weggesteek nie. ’n Ongelowige hou niks daarvan dat ander hom op sy foute wys nie. Hy sal ook nooit die geselskap van gelowiges opsoek nie. Blydskap maak ons vrolik. Hartseer kan ons moed knak. ’n Gelowige smag heeltyd na nog meer kennis en insig. ’n Ongelowige is heeltemal tevrede met sy dwase woorde en gedagtes. As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees. Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep ongelukkig te wees. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat. ’n Slegte humeur maak ander gou kwaad. Geduld en sagmoedigheid maak mense rustig en kalm. ’n Luiaard se lewe is sleg. Dit is soos ’n pad vol spykers en gate. Maar ’n gelowige se lewe is soos ’n gelyk pad. ’n Gelowige kind maak sy ouers baie bly. ’n Kind wat die Here verwerp, maak hulle hartseer. ’n Ongelowige se dwaasheid maak hom gelukkig. Hy weet in elk geval nie van beter nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses. ’n Goeie antwoord is waardevol. Dit kan iemand help om die regte besluite te neem. Wat is wonderliker as die regte woord op die regte tyd. ’n Gelowige leefstyl bring baie geluk. Dit kan ons teen baie ellendes beskerm. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig. Die Here sorg vir die armes en die swakkes. Die Here hou niks van die ongelowiges se slegte gedagtes nie. Maar Hy hou baie van gelowiges wat mooi praat met ander. Gulsigheid en geldgierigheid maak jou oneerlik. Dit vernietig jou gesin se lewe. Wie gelukkig is met wat hy het, probeer nie ander omkoop nie. ’n Gelowige dink mooi voordat hy antwoord. ’n Ongelowige sê sommer die eerste ding wat by hom opkom. Ongelowiges is ver van die Here af. Maar die Here luister na die gelowige se gebed. Vriendelikheid maak ’n mens gelukkig. Goeie nuus is goed vir jou gesondheid. Wie na lewenswysheid luister, is deel van die gelowiges. Tussen die gelowiges sal hy altyd tuis voel. Wie wysheid verwerp, gooi sy geluk weg. Wie na goeie raad luister, verstaan die lewe soveel beter. Liefde vir die Here lei tot groter kennis van die lewe. ’n Nederige manier van leef is belangriker as eer. ’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie. Alles wat ’n mens doen, lyk vir hom reg. Maar die Here weet waarom ons dit aanpak. Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer. Die Here het alles vir ’n doel gemaak, selfs die slegte mense se dag van oordeel. Die Here verag arrogante mense wat op ander trap. Hulle sal sekerlik nog gestraf word. Liefde kan skewe verhoudings weer regmaak. Respek vir mekaar laat ’n vriendskap blom. Liefde vir die Here hou ’n mens van die kwaad af weg. As die Here iemand liefhet, sal sy vyande dit raaksien. Hulle sal op goeie voet met hom wil wees. Liewer eerlik wees en min besit as ’n sak vol geld wat oneerlik verkry is. Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af. Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer. Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery. Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê. ’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer. Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken. Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense. Wie die Here volg, bly uit die moeilikheid. Wie gelukkig wil wees, sal versigtig leef. Wie dink hy is beter as ander, word verneder. Trots lei tot ondergang. Dit is beter om niks van jouself te dink nie en saam met die eenvoudiges te leef, as om baie geld te hê en saam met hoogmoediges te bly. Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig. Mense respekteer iemand wat wys leef. Iemand wat mooi praat, oortuig mense maklik. Vir iemand wat weet hoe om reg te leef is wysheid ’n onuitputlike bron van kennis. ’n Domme sal nooit leer nie. Hy sal altyd die verkeerde dinge doen. Soos ’n mens dink, praat hy ook. ’n Goeie spreker kan mense baie dinge leer. Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam. Soms lyk ’n lewenstyl goed en reg. Uiteindelik bring dit net ellende. Om te leef moet jy werk. Honger laat ’n mens werk soek. Iemand wat nie wil werk nie, is sleg. Al wat hy doen, is om verkeerde dinge te beplan. Sy woorde vernietig mense se lewens. Mense wat ompaaie met die waarheid loop, veroorsaak oral rusie. ’n Skindertong vernietig mooi vriendskappe. ’n Hartelose mens gee vir niemand om nie. Selfs sy beste vriend maak hy seer. Wie skelmpies vir ander knipoog, beplan iets verkeerds. Wie met sy hand op sy mond sit, swyg oor wat verkeerd is. Iemand wat lewenslank naby aan die Here geleef het, se oudag is mooi. Wie sy humeur kan beteuel, is sterker as die sterkste mens. Wie sy drange en emosies kan beheer, is magtiger as baie magtiges. ’n Mens wik en weeg. God sê egter die laaste woord. Eerder met min klaarkom en gelukkig wees, as om oorvloed te hê en heeltyd te baklei. Iemand wat niks het nie, kan deur harde werk baie bereik. Hy kan selfs ’n hoë pos beklee en belangrike besluite neem. Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is. ’n Mens wat die Here verag, luister graag na smerige praatjies oor seks, geweld en moord. Hy kan nooit genoeg daarvan kry nie. ’n Leuenaar kan ook nie met sy gelieg ophou nie. Hy hou net aan en aan. Wie vir armes se eenvoud lag, spot met die Here. Wie hom in hulle ellende verlustig, sal gestraf word. Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk. Keurige taal hoor jy nie sommer by ’n domme nie. Leuens en vuiltaal verwag jy tog nie van iemand wat jy respekteer nie. Omkoopgeld help mense. Dit kan baie deure vir hulle oopsluit. As jy mense vergewe wat jou te kort doen of sleg van jou praat, verstaan jy God se liefde baie goed. Wie iemand altyd verwyt of hom aan sy skuld herinner, verloor gou al sy vriende. ’n Persoon wat die Here ken, luister as iemand hom op sy foute wys. Hy neem dit ernstig op en dink daaroor na. ’n Dom mens kan jy slaan en slaan, maar hy hou aan om verkeerd te doen. Moeilike mense maak met almal rusie. Op ’n dag sal hulle nog hulle moses teëkom. ’n Woedende leeuwyfie wie se kleintjies van haar af weggeneem is, is nie naastenby so gevaarlik soos al die onsin wat ’n dom mens praat nie. As jy mense wat vir jou lief is, sleg behandel, vernietig jy eintlik jouself. Jy sal ’n baie ongelukkige mens word. ’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan. Die Here hou niks van mense wat verkeerde dinge goedpraat en gelowiges afkraak nie. Wysheid kan ’n mens nêrens koop nie. Net mense wat nie die lewe ken nie, dink hulle kan groot somme geld daarvoor betaal. Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan. Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek. Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder. ’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie. Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig. Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak. ’n Slinkse mens kan maklik omgekoop word. Hy sal selfs die waarheid vir ’n paar rand verdraai. Die gelowige wil graag reg leef. Hy soek heeltyd na wysheid. ’n Dwaas stel net in oppervlakkighede belang. ’n Ongelowige kind is vir sy ouers ’n groot hartseer. Partykeer is hy ook ’n groot verleentheid vir hulle. Dit is sleg as onskuldige mense ly, as gerespekteerde mense onbillik behandel word. Wie let op wat hy sê, verstaan wat wysheid is. Wie sy humeur in toom hou, ken die regte lewenstyl. Selfs ’n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim. ’n Selfsugtige mens wat net vir homself leef, soek altyd na ’n rede om die rug vir sy mense te draai. ’n Dwaas gee absoluut niks om vir die regte manier van leef nie. Sy mond is altyd vol oor ander mense. Pas op vir slegte mense. Almal verag en verstoot hulle. Vriendskap met hulle bring skuldgevoelens. ’n Gelowige se woorde is soos ’n borrelende fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle, wys hulle die regte pad. Dit is verskriklik wanneer ’n skuldige vrygespreek word. Nog erger is dit as ’n gelowige onskuldig aangekla word. ’n Dwaas raak die vreeslikste goed oor ander kwyt. Dit maak mense woedend. Hulle wil later niks met hom te doen hê nie. ’n Dwaas se ondergang is sy mond. Hy praat te veel en skinder oor almal en vertel ’n spul leuens. Naderhand verstoot almal hom. Skinder is soos ’n stukkie sjokolade. Dit is lekker. ’n Mens kan nie ophou eet nie. Almal wil daarvan hê. Te veel maak ’n mens siek. Wie laat kom by die werk, vroeg loop, baie rondloop, lang teetye neem en afskeepwerk doen, bewerk sy eie ondergang. Hy kan sy werk verloor en sy familie kan ly. Die Here is soos ’n sterk gebou. In swaar tye kan gelowiges by Hom gaan wegkruip. By Hom is hulle veilig. Ryk mense dink dat geld alles is, dat dit hulle teen gevare sal beskerm. Wie so dink, leef in ’n gekkeparadys. Hoogmoediges se grootpraatjies help hulle niks in ’n krisis nie. Nederiges wat op die Here vertrou, word in elke nood gehelp. Iemand wat antwoord voordat hy luister, praat die grootste onsin. Niemand wil hom meer enige raad vra nie. ’n Blymoedige mens kan die ernstigste siekte oorleef. Vir ’n geknakte gees is daar geen medisyne nie. ’n Slim mens smag na wysheid. Hy luister graag na raad sodat hy reg kan leef. ’n Geskenk bring ’n mens ver. Respek vir ander maak jou gewild. In die hof klink die eerste getuie se verhaal altyd oortuigend. Onder kruisverhoor sing hy gou ’n ander deuntjie. Partykeer moet ’n tussenganger ’n saak tussen mense besleg. As sy beslissing aanvaar word, kom daar vrede tussen die strydendes. Iemand wat in ’n rusie seergekry het, onttrek hom aan ander. Tussen hom en hulle is daar ’n ysterhek. Woorde moet tot dade lei. Baie praat sonder resultate is frustrerend. Saampraat en saamdink het baie voordele. Wie ’n geskikte lewensmaat vind, moet haar nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ’n teken van die Here se liefde vir jou. ’n Arme moet hom altyd verneder om iets te vra. Smekend moet hy sy saak stel. ’n Ryke het niks nodig nie. Hy jak die arme sommer maklik af. In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer. Eerder ’n arme wat die Here ken, as ’n ryke sonder enige wysheid. Hy sê en doen die domste dinge. Dink voordat jy begin. ’n Haastige mens wat nie dink voordat hy optree nie, misluk. Eiesinnigheid kan mens se planne vernietig. Daarna blameer hy die Here vir sy ellende. Waar daar geld is, is daar altyd baie vriende. Baie geld maak baie vriende. ’n Arme word selfs deur sy beste vriend verlaat. Iemand wat doelbewus vals stories versprei, sal nie ongestraf bly nie. Elke leuenaar sal aan die pen ry. Jabroers kruip altyd by die baas. Hulle vra allerhande gunste. Almal is mos altyd ’n vriend van die een of ander belangrike persoon. Maar hulle dink net aan hulle eie belange. Iemand in ’n groot finansiële verknorsing staan alleen. Sy eie familie vermy hom. Sy vriende wil niks met hom te doen hê nie. Beloftes van hulp word gou vergeet. ’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe. Onder kruisverhoor word ’n vals getuie gou vasgetrek. ’n Leuenaar sal nie maklik loskom nie. Rykdom pas darem nie by ’n dwaas nie. Ewe onvanpas is die verterende ambisie van ’n jongman om oor ander te heers. Iemand wat sy humeur in toom hou, is slim. Wie hulle vergewe wat hom beledig, word deur almal gerespekteer. ’n Woedende baas kan soos ’n brullende leeu wees. Almal om hom wil hy verskeur. As sy bui bedaar, is hy weer so mak soos ’n lammetjie. ’n Ongelowige seun wat nie weet hoe om reg te leef nie, kan sy ouers in ellende dompel. Iemand wat voortdurend karring, is so irriterend soos ’n dak wat op ’n reëndag drup. ’n Huis en baie geld kan ’n mens nog by jou ouers erf, maar ’n goeie lewensmaat kom net van die Here af. ’n Luielak doen niks nie. Hy slaap hom honger en eet hom weer vaak. Hy sal nooit sy ideale waar maak nie, nooit lekker kan leef nie. Wie die Here se wil ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Wie sy woord verag, gaan stadig maar seker dood. Wie goed is vir die arme, maak eintlik ’n lening aan die Here. Op sy eie tyd en manier sal Hy hierdie goeie daad beloon. Vat ’n kind vas terwyl hy nog jonk en in die ouerhuis is. Moet dit nie oordryf nie, want dan breek jy sy moed. Iemand met ’n verskriklike humeur moet jy aan sy eie lot oorlaat. As hy sy humeur verloor en in die moeilikheid kom, moet jy hom nie probeer help nie. As jy dit een maal doen, sal jy weer en weer moet help. Luister na mense wat die lewe ken. Aanvaar hulle raad. Dink goed oor hulle woorde na. Pas dit in jou eie lewe toe. Dan sal jy weet hoe om gelukkig te leef. ’n Mens maak baie planne en koester groot ideale. Maar nie alles word waar nie. Wat die Here egter beplan, dit gebeur. Die mooiste ding wat ’n mens kan doen, is om lief te hê. ’n Arme wat opreg is, is baie beter as iemand wat lieg en bedrieg. Wie die Here liefhet, het die lewe. So ’n mens ken baie vreugde. Hy smaak die lewe in sy volheid. Hy lewe rustig. ’n Luiaard is selfs te lui om te eet. Hy sit by die tafel, sien die lekker bord kos, sit dit op sy vurk, maar raak aan die slaap voordat dit in sy mond kom. Iemand wat baie van homself dink, moet eers hard aangespreek word voordat hy luister. ’n Ligte vermaning is vir ’n wyse genoeg. Hy weet wat om te doen. Wie sy pa sleg behandel en sy ma verneder, is ’n veragtelike en ’n verfoeilike mens. Jy kan net wysheid kry as jy bereid is om te leer, as jy jou voorneem om die regte dinge op die regte tyd te doen en te sê. ’n Vals getuie verdraai die waarheid doelbewus. Hy geniet dit om ander af te kraak. So ’n mens steur hom nie aan wat reg is nie. Wie wysheid verwerp, word ’n ongelukkige mens. ’n Domkop wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak skandes en ly groot skade. Te veel wyn laat jou onsin praat. Sterk drank maak jou rumoerig. Dit is slim van jou om nie dronk te word nie. Die woedebuie van ’n regeerder is net so angswekkend soos ’n grommende leeu. Wie hom teëgaan, kan sy lewe verloor. ’n Wyse mens bly weg van rusies en ’n gestry. Dit is net ’n dwaas wat sy neus oral insteek. Lui mense gaan ook in die môre werk toe. Daar doen hulle net mooi niks, maar aan die einde van die maand wil hulle geld hê. Wat mense dink, is ’n geslote boek. Niemand weet wat in hulle koppe aangaan nie. Net iemand met ’n fyn aanvoeling vir mense verstaan iets daarvan. Egte vriendskap is skaars. Baie sê hulle is jou vriend, maar min sal jou deur dik en dun ondersteun. ’n Gelowige is ’n mens op wie jy kan reken. Hy doen wat hy glo. Sy kinders kan bly wees hieroor, want hulle het ’n voorbeeld om na te volg. ’n Leier met baie lewenswysheid sien verkeerde dinge maklik raak. Hy het die mag om verkeerde dinge te stop. Wie is sonder sonde? Wie kan sê dat hy altyd net aan die goeie dink? Wie doen altyd die regte dinge op die regte tyd? Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ’n gruwel. ’n Gelowige word aan sy vrugte geken. Dade spreek harder as woorde. Om te kan hoor en sien is gawes van die Here. Moenie lui wees nie. Moenie jou tyd met niksdoen verspil nie. Werk hard! Dan sal jy genoeg hê om van te leef. ’n Koper sal altyd oor die prys kla. Later spog hy dat dit ’n winskoop was. Kennis van die lewe is kosbaar. Geen geld kan dit koop nie. Wyse woorde is onbetaalbaar. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge, veral as die ander party vrot van die skuld is. Geld wat oneerlik verkry is, bring nie geluk nie. Dit is soos brood wat in jou mond grond word. Dit vernietig jou tande en veroorsaak pyn. Goeie planne kan ook op vergaderings gemaak word. Voordat jy iets aanpak, vra eers raad. Beplan dan fyn. Wie loop en skinder, lap ander se geheime uit. Vermy praatkouse en skinderpraatjies. Wie sy pa en sy ma seermaak of vloek, kwyn weg. God verwerp hom. Wie te vroeg op sy erfporsie aandring, het niks vir sy oudag nie. Moenie jou wreek oor kwaad wat jou aangedoen is nie. Los dit liewer vir die Here. Hy sal jou help. Die Here haat kullery, winkels wat swak produkte ten duurste verkoop, firmas wat mense uitbuit. Niemand weet wat môre gaan gebeur nie. Wie egter naby die Here leef, sal weet wat om te doen. Pas op wat jy vir die Here sê. Moenie in nood iets aan Hom beloof wat jy nie kan doen nie. ’n Sterk leier vat bedrieërs vas. Hy stop wanpraktyke en straf korrupsie. Denke is ’n gawe van die Here. Dit is soos ’n lig op ons pad. Dit help ons om onsself te verstaan. Dit help ons om die regte dinge te doen en te sê. Goedheid en getrouheid is ’n leier se behoud. So lank as wat hy vir ander omgee, sal hy regeer. Fisieke krag is ’n jongman se trots. ’n Gryskop se krag is sy kennis van die lewe. ’n Pak op sy tyd verrig wondere. Dit laat ’n kind besluit om sy nonsens te stop. ’n Groot leier dink oor baie dinge, maar die Here rig sy denke. Hy beplan, maar God besluit wat sal gebeur. Elke mens dink hy doen altyd die regte ding. Die Here weet wat in elke mens se hart omgaan. Om die regte dinge te doen en te sê is vir die Here baie belangriker as ’n groot dankoffer. Dit is verkeerd om baie van jouself te dink en op ander neer te sien. Wie daarmee aanhou, kan later nie meer verander nie. Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom. Geld wat vinnig en oneerlik gemaak is, bring nie geluk nie. Wie dit doen, draai homself in die strikke van die dood vas. Mense wat heeltyd net verkeerde dinge doen, vernietig hulleself. En dit net omdat hulle weier om reg te leef. ’n Slegte mens se lewe is maar krom en skeef. Die gelowige weet hoe om reg te leef. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis by iemand wat heeltyd stry. ’n Slegte mens smag na alles wat verkeerd is. Hy gee niks vir ander mense om nie. ’n Wyse kan nooit genoeg van die lewe leer nie. Wanneer ’n slegte mens vir sy dade gestraf word, moet ’n wyse ’n les daaruit leer. Wanneer ’n wyse kennis van die lewe opdoen, moet hy dit dadelik sy eie maak. Die Here weet wat slegte mense doen. Hy kan hulle in ’n oogwink vernietig. Wie ’n arme se noodkreet ignoreer, sal eendag self in die moeilikheid wees. Maar dan sal niemand help nie. Soms help ’n geskenk om iemand se woede te laat bedaar. Geld wat ongemerk in ’n baadjiesak gesit word, help om ’n opvlieënde humeur te temper. ’n Gelowige is bly as goeie dinge gebeur en reg geskied. Slegte mense se verkeerde dade lei tot ongeluk en hartseer. Iemand wat nie reg wil leef nie het die lewe verloor. Stadig maar seker verloor hy al sy lewensvreugde. Uiteindelik gaan hy dood. Wie niks doen nie en net partytjie hou, sal nooit geld hê nie. Wie net lekker wil eet en drink, verwaarloos sy werk. Hy sal nooit ryk wees nie. Die Here straf slegte mense, maar help die gelowige. Hy vernietig die ongelowige, maar seën dié wat in Hom glo. Dis beter om eenkant en alleen te bly as by mense wat graag stry en aanhou neul. ’n Wyse mens het ’n fyn smaak. Hy ken die waarde van dinge en pas sy besittings mooi op. ’n Dom mens verwaarloos en vernietig alles. Wie reg lewe en mense liefhet, het die lewe. Mense sal hom eer en respekteer. ’n Wyse kyk deur mense se magspeletjies. Hulle groot planne en agteraf skemas vernietig hy. Wie sy mond hou en sy tong beheer, bly uit die moeilikheid. ’n Arrogante mens se naam stink. Iemand wat vermetel optree en niemand in ag neem nie word verwerp. ’n Luiaard leef in ’n droomwêreld. Hy begeer so baie dinge, maar is nie in staat om hard te werk en geld te verdien nie. ’n Lui mens dink heeldag lank net aan sy eie selfsugtige begeertes. ’n Gelowige gee baie vir ander mense. Dit is verskriklik as ongelowiges iets vir die saak van die Here gee. Hulle bedoel dit tog nie. ’n Vals getuie word maklik vasgetrek. Niemand wil na hom luister nie. Jy kan maar luister na ’n getuie wat die waarheid praat. ’n Slegte mens is nie opreg nie. Hy doen alles vir die skyn. ’n Gelowige se liefde word aan sy manier van lewe gesien. Al ons wysheid, insig en planne is niks voor die Here nie. Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs. ’n Goeie naam is beter as geld. Ander se liefde is kosbaarder as groot rykdom. Ryk en arm kan ook saamwoon. Die Here het hulle immers albei geskep. ’n Slim mens weet wanneer gevaar dreig. Hy weet hoe om dit te vermy. ’n Dom mens ken nie die lewe nie. Hy sukkel maar net aan. Mense wat die Here liefhet en nederig lewe, geniet respek en die goeie dinge van die lewe. Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter. ’n Wyse bly ver weg van sulke dinge af. Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef. ’n Ryke heers oor die armes wat hom geld vra. ’n Lener is die slaaf van die een by wie hy leen. ’n Regeerder wat heeltyd verkeerde dinge doen, sal nog die aaklige gevolge daarvan dra. Sy regering sal nie lank hou nie. Iemand wat mense se nood raaksien, ervaar blydskap. Hy wat vir armes gee, is ’n gelukkige mens. As ’n rusiemaker weggaan, is alles sommer rustiger en kalmer. Onderlinge rusie en spanning sal dadelik ophou. Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel. Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne. ’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet. Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee. Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede. God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie. Spits jou ore! Luister mooi na die wenke vir ’n wonderlike lewe. Maak alle inligting oor die regte manier van lewe jou eie. Dink daaroor na. As jy dit doen, sal jy gelukkig wees. Jy sal ook weet wat om op die regte oomblik te sê. Al die spreuke moet jou help om die Here nog beter te ken en te vertrou. Dit is waarom al hierdie woorde van wysheid neergeskryf is. Ja, alles is net vir jou geskryf. Goeie raad vir ’n gelukkige lewe! ’n Groot hulp om tussen waarheid en leuens te onderskei. ’n Wonderlike hulpmiddel om ’n mens met integriteit te wees. Moenie ’n arm mens uitbuit omdat hy weerloos is nie. Moenie die behoeftiges wat om hulp roep, in die grond in trap nie. Onthou, die Here is aan hulle kant. Hy veg vir hulle. En Hy straf almal wat hulle verneder. Pas op vir mense met ’n slegte humeur. Bly uit die pad van ’n wraaksugtige mens. Moet tog nooit soos hulle word of in hulle aaklige strikke beland nie. Dink mooi voordat jy ’n kontrak sluit. Moenie vir ander se skuld borg staan nie. Jy kan in groot skuld beland. As jy nie geld het om te betaal nie, sal jy nog so lekker slaap, dan verkoop hulle jou bed onder jou uit. Moenie aan grensdrade torring nie. Plase se grense is deur die voorgeslagte bepaal. Ander se eiendom moet gerespekteer word. Ken jy ’n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe. As jy saam met ’n belangrike persoon eet, let op jou tafelmaniere. Al is jy baie honger, moet jy nie gulsig wegval en alles vinnig opeet nie. Moet ook nie so na die gasheer se kos staar dat almal ongemaklik voel nie. Sy kos is tog nie so lekker as wat jy dink nie. Moenie jou vir baie geld afsloof nie. Wees slim genoeg om te weet wanneer jy genoeg het. Rykdom hou ook nie vir altyd nie. Dis soos ’n voël wat die een oomblik nog naby jou op ’n tak sit en dan skielik wegvlieg. So vinnig verdwyn geld. Moenie jou met ’n baie suinige mens ophou nie. Vra hom niks nie. Hy sal jou uitnooi om by hom te kom eet. Moet hom nie vertrou nie, want hy stel nie eintlik in jou belang nie. Sy gasvryheid is skyn. Selfs sy kos is so sleg dat dit jou siek maak. Jou opbouende gesprekke beteken vir hom niks nie. Moet tog nie ’n dom mens probeer oortuig nie. Jy mors net jou asem. Hy verstaan niks van jou wyse woorde nie. Respekteer ander se eiendom. Moenie weerlose mense soos weeskinders uitbuit nie. Die Here is hulle helper. Hy sal vir hulle sorg en jou straf. Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer. ’n Kind het dissipline nodig. ’n Pak slae op die regte tyd sal hom goed doen. Wie dit nalaat, stuur sy kind die verderf in. Jong vriend, hoor wat die wysheidsleraar vir jou sê: As jy die wysheid jou eie gemaak het, is ek baie bly. As jy weet wat om op die regte oomblik te sê, loop ek oor van blydskap. Moet niks wil hê van slegte mense nie. Dit kan jou net in die ellende dompel. Wees eerder elke dag baie lief vir die Here. As jy dit doen, wag daar wonderlike dinge op jou. Goeie dinge sal met jou in die toekoms gebeur. Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef. Moenie jou oorgee aan drank nie. Voor jy weet waar jy is, is jy daaraan verslaaf. Moenie ’n vraat wees wat alles gulsig opslurp nie. ’n Suiplap en ’n vraat word gou arm. Stukkende klere is hulle voorland. Onthou die goeie waardes wat jy in jou ouerhuis geleer het. Moenie jou ouers se harte op hulle oudag breek nie. Hou vas aan die lewenswaarhede wat hulle jou geleer het. Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe. [24-25] Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef. *** Vertrou op my goeie raad vir die lewe. Jy sal sien dit help. Pas op vir die los vrou. Sy kan jou lewe verwoes. ’n Ander man se vrou is soos ’n diep put waaruit niemand kom nie. ’n Prostituut is altyd op loer na nog ’n slagoffer. Nes ’n rower. Elke dag loop baie mans hulle met haar vas. Sy maak van hulle egbrekers. Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg? Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is. Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge. Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak. Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin. Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap. Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie. Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie. Moet niks van slegte mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie. Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle maak net moeilikheid. ’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word. Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak. Wysheid is beter as fisieke krag. Dit maak jou geestelik sterk. Dit help jou om jou probleme op te los. Mense wat die lewe ken, kan jou ook baie help. Hulle sal jou leer om jou daaglikse moeilikhede te hanteer. Wysheid is bo ’n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref ’n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid. Iemand wat net slegte dinge beplan, kry gou-gou ’n baie slegte naam. Waaroor hy dink en wat hy doen, is een stuk sonde. Vir die gemeenskap is hy ’n verleentheid. ’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min. Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit! Moenie agterna sê jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke. Heuning is gesond, lekker om te eet. So is die wysheid ook. Dit is goed vir die gesondheid. Dit waarop die wyse hoop, sal gebeur. Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie. ’n Gelowige staan elke keer na ’n terugslag weer op. Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om weer van voor af te begin nie. Moenie bly wees as dit met ander sleg gaan nie, al hou jy niks van hulle nie. As jy dit doen, stel jy die Here teleur. Op ’n goeie dag help Hy weer sulke mense. Moenie jou ontstel oor wat slegte mense aanvang nie. Moet niks van hulle wil hê nie. Hulle het niks om op te hoop nie. Hulle gaan sonder die Here dood. Jy moet die Here liefhê en jou leiers respekteer. Moenie jou ophou met mense wat magshonger is en net hulle eie belang soek nie. ’n Skielike ramp kan hulle tref, dan is dit klaarpraat met hulle. Selfs ’n wyse regter moet hoor: “’n Partydige uitspraak is verkeerd.” Wie die skuldige vryspreek, sal deur niemand weer vertrou word nie. Wie die regte oordeel vel, sal die goeie van die lewe geniet. Mense hou baie van iemand wat eerlik is en reguit op vrae antwoord. Kry eers ’n goeie werk voordat jy ’n huis bou. Verdien eers genoeg voordat jy met ’n gesin begin. Moenie leuens oor ander vertel of iemand doelbewus in ’n swak lig stel nie. Moenie wraaksugtig wees nie. Moenie iemand terugkry vir wat hy aan jou gedoen het nie. Die wysheidsleraar sê: “Ek het by die huis van ’n luiaard verbygeloop. Alles was so verwaarloos. Niks word in stand gehou nie. Die gras is lank. Oral groei die onkruid welig. Boonop was die muur voor die huis stukkend. Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink. Hoekom is dit so? Uiteindelik het ek ’n antwoord gekry: luiheid bring armoede. Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie insluimer, nog ’n bietjie niks doen, en skielik oorval die armoede jou. Van die honger en die koue sal jy nog doodgaan.” Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf. Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek. Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil. Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe. Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie. Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ’n saak oortuig. Met mooipraat kan jy baie teëstand afbreek. Eet net genoeg. Soetgoed is lekker, maar jy moet weet wanneer om op te hou. As jy jou ooreet, voel jy gou-gou naar. Moenie te veel by mense kuier nie. Hulle sal moeg word vir jou en later niks meer van jou hou nie. Liegstories en skinderpraatjies is soos ’n hamer, ’n mes en ’n skerp pyl wat iemand se lewe verwoes. Iemand wat onbetroubaar is, is soos ’n vrot tand en ’n seer voet. Wanneer jy hom die nodigste het, laat hy jou in die steek. ’n Wyse het mensekennis. Hy sal nie vrolik wees by mense wat hartseer is nie. Dit pas tog nie. Dit is soos om jou warm klere op ’n bitter koue dag uit te trek, of soos om die verkeerde salf op ’n wond te smeer. As jou vyand honger is, gee hom kos. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Dit sal hom sagmaak. Hy sal jammer wees oor alles wat hy aan jou gedoen het. En die Here sal ook lief wees vir jou. Soos die wind reën bring, so maak skinderpraatjies ’n mens woedend. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis saam met ’n rusiemaker wat heeltyd neul en kerm. Soos koue water vir ’n groot dors, so is goeie nuus van ’n geliefde wat ver bly. As drinkwater vuil word en damme besoedel word, is dit sleg. So is dit ook as ’n gelowige die pad byster raak en verkeerde dinge begin doen. Te veel soetigheid is sleg. So ook oordadige eerbetoon. Iemand sonder enige selfbeheersing is net so weerloos soos ’n groot stad sonder polisie of veiligheidswagte. Totale wanorde kan uitbreek. Sneeu in die somer pas nie. Reën op die verkeerde tyd kan rampspoedig wees. So pas eerbetoon ook nie by iemand wat nie weet hoe om reg te leef nie. Al wens iemand jou slegte dinge toe, niks daarvan sal waar word nie. Soos verskrikte voëltjies wat wegvlieg, sal dit in die niet verdwyn. Soos ’n sweep ’n perd op die regte pad hou, so moet ’n dom mens die regte dinge op die harde manier leer. Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom. Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid. Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom. Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie. ’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie. ’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe. Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed. ’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit. ’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense. Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp. Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak. Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie. As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie. Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid. Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word. Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne. ’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie. Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei. Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind. Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder. Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes. Moenie te seker oor môre en oormôre wees nie, want jy weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen. Daar is iets wat erger is as ’n swaar klip of ’n vrag sand. Dit is om saam met ’n dom mens te bly. Daar is iets wat nog verskrikliker is as ’n vinnige humeur. Dit is ’n jaloesie wat ’n mens verteer. Dit is beter dat iemand jou uit liefde berispe as dat iemand jou liefhet, maar dit nooit wys nie. Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg. Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker. Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het. ’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is. Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie. Soos ’n irriterende gedrup op ’n reëndag, so is ’n moeilike mens wat net rusie maak. Wie so ’n mens wil verander, probeer verniet. Dit is soos om die wind met jou hande te vang of olie met jou hande te gryp. Yster slyp yster. So vorm mense mekaar. Wie ’n vrugteboom versorg, sal later van sy vrugte eet. Wie hard werk, sal eendag ’n goeie pensioen ontvang. Soos ’n mens sy gesig in ’n spieël sien, so verstaan hy homself in wat hy dink. Mense gaan voortdurend dood. Dit kry geen einde nie. So is ’n mens se begeertes ook. Dit word nooit versadig nie. Alles wat hy sien, wil hy hê. Soos silwer in vuur en goud in die smeltoond gelouter word, so word ’n mens se karakter in die harde leerskool van die lewe gevorm. Al kan jy ’n dom mens met ’n hamer slaan of hom fynmaal, sy domheid kry jy nooit uit hom uit nie. Geld se waarde word minder en dit word ook maklik uitgegee. Pas dus die dinge wat jy het, baie goed op. Kyk mooi na jou eiendom. Dan kan jou kinders ook nog eendag daarvan kry. [25-27] Werk hard sodat jy in al jou behoeftes kan voorsien. Gebruik elke kans wat jy kry, dan sal jy genoeg vir kos en klere hê. Almal in jou huis sal genoeg hê om van te leef. ’n Ongelowige se slegte gewete laat hom onrustig voel. Hy is soos iemand wat weghardloop al jaag niemand hom nie. ’n Gelowige ervaar kalmte. Hy is soos ’n leeu in sy veilige skuilplek. ’n Land waar korrupsie en misdaad hoogty vier, kry die een slegte leier na die ander. Iemand met kennis van die lewe en praktiese vaardighede kan ’n land van die afgrond red. ’n Arm mens wat die armes onderdruk, is soos ’n haelstorm wat alles verwoes. Hongersnood en baie ellendes is dan die armes se voorland. Iemand wat nie meer na die woord van die Here luister nie, is soos ’n ongelowige. Iemand wat die woord ernstig opneem, kom nie met slegte mense klaar nie. Slegte mense het geen begrip van wat reg of verkeerd is nie. Mense wat die Here ken, weet wat om te doen en wat om nie te doen nie. ’n Arm mens wat reg leef, is beter daaraan toe as ’n ryke wie se lewe krom en skeef is. ’n Seun wat die woord liefhet, is slim. Hy maak sy pa baie bly. Wie met vrate en dronklappe bevriend is, is vir sy ouers ’n verleentheid. Wie die kuns van geldmaak verstaan, moet hom ook oor die armes ontferm. Wie nie meer na die woord van die Here luister nie se gebede beteken niks nie. Wie verkeerde dinge teen gelowiges beplan, sal self in die put van ellende val. Wie die Here liefhet, sal die goeie van die lewe ervaar. ’n Ryk mens is slim in sy eie oë. ’n Arme wat die lewe ken, kyk dwarsdeur hom. As gelowiges regeer, is daar blydskap. Almal word dan bevoordeel. As slegte mense die mag oorneem, is almal bang. Mense onttrek hulle of emigreer. Wie sy oortredings toesmeer, sal nooit gelukkig wees nie. Wie sy sonde bely en nooit weer slegte dinge wil doen nie, sal die Here se liefde ervaar. Wie die Here altyd liefhet, ervaar blydskap. Wie sy hart hard maak, sal nooit gelukkig wees nie. Soos ’n brullende leeu en ’n honger beer, so is ’n slegte leier wat hulpeloses en armes se regte vertrap. Hy maak hulle lewe net nog moeiliker. ’n Regeerder sonder insig in die regte manier van lewe, sal sy mag misbruik. Wie wanpraktyke haat, sal lank regeer. ’n Moordenaar wat onskuldige mense doodmaak, verdien geen genade nie. Tot sy dood toe sal hy van God verlate wees. Niemand moet hom probeer help nie. Iemand wat reg leef, is veilig in die hand van die Here. Wie verkeerde dinge doen se lewe is ’n nagmerrie. Wie hard werk, het genoeg om te eet. Wie rondstaan en niks doen nie, sal arm word. ’n Betroubare mens ervaar baie seëninge. Wie vinnig ryk wil word, verbrand sy vingers. Om kant te kies in enige saak is verkeerd. Al het jy dit hoe nodig, omkoopgeskenke is ’n gruwel. ’n Suinige en jaloerse mens sal alles doen om ryk te word. Op die ou einde het hy nog steeds niks nie. Wie die moed het om mense mooi op hulle foute te wys word meer gerespekteer as iemand wat hulle net heeltyd vlei. Wie sy ouers uitbuit en nie daaroor skuldig voel nie, is soos ’n dief wat vir niemand omgee nie. Iemand wat net aan homself dink en net homself verryk, maak mense woedend. Hulle wil niks met hom te doen hê nie. Wie op die Here vertrou, is ryk en voorspoedig. Iemand wat net op sy eie insigte vertrou, is dom. Wie die spreuke ernstig opneem, spaar homself baie ellende. Wie vir die armes omgee, sal nooit swaarkry nie. Wie blind is vir hulle ellende, sal self baie swaarkry. Wanneer ’n diktator aan bewind kom, maak goeie burgers hulle uit die voete. Wanneer ’n bose regering van die toneel verdwyn, kan gelowiges weer die mag oorneem. ’n Hardkoppige mens wat nooit na ander luister nie, sal hom nog lelik vasloop. As ’n gelowige die mag oorneem, juig die mense. As slegte mense aan bewind kom, kla die volk. ’n Jongmens wat graag reg wil leef, maak sy ouers baie bly. Wie prostitute besoek, mors swaarverdiende geld. Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak. Loop katvoet vir die man wat jou altyd loop en vlei. Hy bedoel dit nie regtig nie. Dit is soos ’n net wat hy oor jou gooi en waaruit jy nie kan loskom nie. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde. ’n Gelowige weet dat hy ’n arm mens moet help. ’n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie. Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar. Dis nie die moeite werd om met ’n dom mens te argumenteer nie. Hy lag jou net uit. Daar kom nie rus nie. Mense wat ander graag seermaak, hou niks van gelowiges nie. Vir hulle wat die Here ken, is die lewe wonderlik. ’n Dom mens verloor oral en altyd sy humeur. ’n Wyse beheer homself. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup. ’n Arm mens en die een wat hom onderdruk, is albei die handewerk van God. Hy weet wat hulle doen en sê. As ’n regering vir die armes omgee, sal hulle altyd onthou word. Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom. Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig. Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Iemand wat vir jou werk, luister nie altyd na wat jy sê nie. Hy verstaan wat jy sê, maar hy steur hom eenvoudig nie aan jou nie. Ken jy iemand wat praat voordat hy dink? Wel, daar is vir ’n dom mens meer hoop om te verander as vir hom. Jou werker moet presies weet waar hy met jou staan. As dit nie gebeur nie, kan jy groot skade ly. Iemand met ’n vinnige humeur veroorsaak moeilikheid. Iemand se woedeuitbarstings doen grote skade. Iemand wat baie van homself dink, word hard grond toe gebring. Iemand wat nederig is, dwing respek af. Wie gesteelde goed koop, is net so skuldig. Hy weet dit is verkeerd, maar steur hom nie daaraan nie. Angs is soos ’n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou, voel veilig. Mense kruip by invloedrykes om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer. ’n Gelowige wil niks met ’n slegte mens en sy verkeerde dade te make hê nie. ’n Ongelowige kan iemand wat reg leef nie verdra nie. Die woorde van Agur, die seun van Jake, van Massa. Dit is belangrike woorde aan Itiël en Ukal. Ek is dom. Ek weet net mooi niks nie. Ek het nooit gaan leer nie. Van die Allerheiligste weet ek te min. Wie kan die Here deurgrond? Wie het al hemel toe gegaan en teruggekom? Dit is onmoontlik om Hom volledig te ken. Wie het al die wind met sy hande teruggehou? Wie kan al die waters van die see met sy klere opskep? Wie ken die afmetings van die aarde? As jy so ’n persoon ken, sê my wat sy naam is. Vertel my ook wat sy seun se naam is. Elke woord van die Here is waar. Jy kan daarop reken. Wie by Hom wegkruip, is veilig. Hy beskerm elkeen. Moenie die Here se woorde verdraai of verkeerd uitlê nie. Hy sal jou straf en die mense sal nie meer na jou luister nie. Here, daar is twee dinge wat ek van U vra. Twee dinge wat ek graag in hierdie lewe wil hê: laat my nie ’n vals mens wees nie, laat ek nie ander belieg en bedrieg nie. Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie. Moenie iemand by sy baas loop en beskinder nie. Hy sal dit uitvind en dan is jy in die moeilikheid. Daar is vier soorte mense uit wie se pad jy moet bly: kinders wat hulle ouers vloek en mishandel; mense wat dink hulle is goed, maar wat nie hulle eie tekortkomings besef nie; arrogante mense wat te veel van hulleself dink, en wrede mense wat ander doodmaak en niks vir die armes en die swakkes omgee nie. Iemand wat altyd meer en meer wil hê, ken net twee woorde: gee, gee. Daar is drie “dinge” wat nooit tevrede gestel kan word nie, vier wat nooit genoeg kry nie: dit is die dood, die moederskoot van ’n kinderlose vrou, ’n dorre landskap tydens droogte en ’n vuur wat aanhou brand. Iemand wat sy ouers verag en hulle sleg behandel, sal tragies sterf. Hy sal in die veld dood lê en die roofvoëls sal sy oë uitpik. Daar is drie dinge wat net te wonderlik is om te verstaan, vier wat ek hoegenaamd nie kan begryp nie: die gemak waarmee ’n arend in die lug rondvlieg; die manier waarop ’n slang geruisloos oor ’n rots seil; die manier waarop ’n skip op die oop see ronddryf, en die liefde van ’n man vir ’n vrou. ’n Los vrou verontskuldig haarself altyd. Sy is soos iemand wat skelm eet, haar mond afvee en dan sê sy het niks verkeerds gedoen nie. Daar is drie dinge wat ’n land op die randjie van ’n afgrond bring, vier wat hom heeltemal kan verwoes: die skoonmaker wat president word; ’n dom mens wat hom net vol eet, maar niks wil doen nie; ’n vrou wat nie liefde ken nie en dan tog ’n man kry; ’n werkster in ’n lae rang wat sommer die baas word. Daar is vier diertjies wat baie klein is, maar buitengewoon slim is: miere is nie juis baie sterk nie, maar hulle weet baie goed dat hulle in die somer kos vir die winter moet wegbêre; klipdassies is ook nie sterk nie, maar hulle het dit tog reggekry om in rotsskeure te bly; sprinkane het nie ’n koning nie, maar hulle tree gedurig soos een man op, en akkedisse is so klein, jy kan hulle sommer met jou hand optel, maar hulle weet presies hoe om in die duurste huise van die rykste mense te kom. Daar is drie dinge wat indruk maak, vier wat ’n mens altyd sal onthou: die leeu wat oor die diereryk heers en vir niemand terugstaan nie; die haan wat triomfantlik oor die henne heers; die ram aan die voorpunt van sy trop; die koning wat sy troepe uitlei. As jy so dom was om groot te praat of verkeerde dinge te beplan, hou dan dadelik daarmee op. So seker as wat ’n mens melk skud en dit botter word, iemand op die neus slaan en dit begin bloei, iemand kwaad maak en daar rusie ontstaan, net so seker kom jy in die moeilikheid as jy nie jou domheid los nie. Hier volg nou die woorde van koning Lemuel van Massa se ma: My kind, wat sal ek vir jou sê? Jy wat ek in die lewe gebring het. Jy, my gebedskind, wat ek van die Here afgesmeek het. Luister mooi wat ek vir jou wil sê: Moenie jou liggaam vir ’n los vrou gee nie. Moenie dat sy jou lewe vernietig nie. Sulke vroue bring konings tot ’n val. Pas op vir te veel wyn. Dit pas nie by ’n koning nie. Mense wat regeer, moet nie heeltyd na drank ruik nie. Netnou drink hulle te veel en vergeet hulle hulle pligte. Kort voor lank dink hulle nie meer aan die arm mense wat hulle moet help nie. Gee eerder ’n bietjie drank aan mense wat op hulle laaste is, wyn aan hulle met wie dit bitter sleg gaan. Laat hulle drink sodat hulle hulle ellende kan vergeet, sodat hulle nie meer aan hulle swaarkry dink nie. Help liewer die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses. Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes. Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. Sy verrig haar dagtaak met vreugde. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag. Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig. Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar. Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue. Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak. Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is. Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk. Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie. Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe. Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie. Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. Haar man oorlaai haar met komplimente. In hierdie lewe is daar baie goeie vroue, maar hierdie vrou oortref almal. Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing. Hier volg die woorde van die Prediker, ’n seun van Dawid, die koning van Jerusalem. Alles is sinloos, sê die Prediker. Absoluut alles. Die lewe het geen sin nie. Alles loop uit op niks. Elke dag werk jy hard, maar wat kry jy van al jou gesukkel? Geslagte kom en gaan, maar watter sin het dit? Die lewe gaan maar op sy ou manier voort. Elke dag kom die son op. Teen sononder gaan dit moeg onder, maar die volgende oggend staan dit weer op. En die wind waai eindeloos heen en weer. Dit waai nou dié kant toe en dan weer daardie kant toe. Al die riviere loop see se kant toe, maar die see word nooit vol nie. Die riviere se loop see toe bly altyd dieselfde. Hulle vat altyd dieselfde pad. Woorde kan ’n mens moeg maak met ’n moegheid wat niemand kan beskryf nie. Jou oog kyk en kyk sonder om ooit klaar te sien. En jou oor hoor en hoor, maar dit kry nooit klaar gehoor nie. Wat reeds gebeur het, sal maar weer gebeur. En wat mense tot nou toe gedoen het, sal hulle maar môre en oormôre weer doen. Sal iemand ooit kan sê: “Kyk, dit is nou werklik iets nuuts”? Hoegenaamd nie! Dit het al in die gryse verlede en lank voor ons tyd bestaan. Niemand dink meer aan die mense wat lank gelede geleef het nie. Of aan hulle wat nog moet kom nie. Elke geslag dink net aan hulleself. Hulle het die voorgeslag lankal vergeet. Ek, die Prediker, was koning van Israel, in Jerusalem. Ek het besluit om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en te probeer verstaan. Ek het uitgevind dat dit ’n moeilike taak is wat God die mens opgelê het om oor sulke dinge na te dink en dit na te vors. Ek het alles gesien wat mense op aarde doen. Net mooi alles was sinloos; ’n gejaag agter wind aan. Dit is presies soos die spreekwoord sê: “As iets krom is, kan niemand dit reguit maak nie, want niemand kan die wêreld verbeter nie.” Ek het by myself gedink dat ek oor die jare sommer baie wysheid en lewenskennis versamel het. Baie meer as enigeen wat voor my in Jerusalem regeer het. Al die kennis en wysheid het deel van my lewe geword. Toe het ek besluit om die verskil tussen wysheid en kennis aan die een kant en domheid en dwaasheid aan die ander kant te leer ken. En ek moet erken dat daar eintlik geen verskil is nie. Alles is maar ’n sinlose gejaag na wind. Wie insig in die lewe het, het ook baie verdriet. En wie kennis versamel, ervaar ook groot hartseer. Ek het toe besluit om die lewe te geniet en uit te vind wat vreugde nou eintlik is. Ook dit was ’n sinlose gejaag na wind. Ek het ontdek dat om te lag nie veel sin het nie en dat vreugde nie veel beteken nie. Omdat ek na insig in die lewe gesmag het, het ek my toe aan wyn en genot oorgegee. Ek wou vasstel wat goed is vir ’n mens en wat nie. Ek het toe groot projekte aangepak: ek het huise gebou, wingerde aangeplant, parke en tuine uitgelê, verskillende vrugtebome geplant en watervore uitgekap om ’n groot bos met groen bome nat te lei. Verder het ek ’n groot klomp werkers, mans en vroue, in diens geneem en hulle kinders my eiendom gemaak. Ek het ook groot troppe vee vir my gekoop, meer as wat enige koning voor my gehad het. Hope silwer en goud het ek bymekaargemaak. Ek het talle sangers en sangeresse aangestel, en baie mooi meisies gekry om my gelukkig te hou. Naderhand was ek groter en belangriker as enigiemand wat ooit in Jerusalem gewoon het. My soektog na wysheid en insig het ek egter nooit verloor nie. Wat ek in dié tyd wou gehad het, het ek gekry. Ek het myself niks ontsê nie. En ek was gelukkig oor wat ek alles bereik het. Dit was die beloning vir al my moeite. Toe het ek alles wat ek gedoen het, krities begin ondersoek. Oor my werk en inspanning het ek baie nagedink. En ek het besef dat alles sinloos is. Dit is bloot net ’n mors van tyd. In hierdie wêreld is daar absoluut géén sin nie. Ter wille van my opvolger het ek toe besluit om goed na te dink oor die nut van wysheid en dwaasheid. En my slotsom? Soos ’n lig in die donker beter is as niks nie, so is wysheid beter as domheid. ’n Wyse kan dus sien waar om te loop en die dwase nie. Een ding het ek egter ontdek: dieselfde lot tref wyse en dwase mense. En ek het hiermee geworstel. As dieselfde dinge met die wyse én die dwase gebeur, wat is dan die sin van al my wysheid? Ek het toe besef daar is geen sin nie. Die lewe is absoluut sinloos. Die wyse en die dwase gaan albei die een of ander tyd sterf. En die mense gaan die wyse gou vergeet en die dwase ook nie lank onthou nie. Die lewe het vir my alle betekenis verloor, want niks op aarde het sin nie. Alles is sinloos en net ’n gejaag agter wind aan. Alles wat ek in my lewe bereik het, het ek begin verafsku omdat my opvolger die vrug daarvan gaan pluk. En niemand weet of hy wys of dwaas gaan wees nie. Een ding is egter seker: hy sal alles besit en geniet waarvoor ek hard gewerk het. Dit wat ek deur my wysheid vermag het, sal hy net so oorneem. Dít wys net hoe sinloos die lewe werklik is. Daarom het ek oor die sin van al my geswoeg op aarde begin twyfel. ’n Mens kan elke dag met oorgawe werk, en dan kom daar iemand wat glad nie daarvoor gewerk het nie en hy stap met alles weg. Dit is mos verkeerd; dis opperste sinloosheid. Wat is dan die sin van al ons harde werk? Wat het ’n mens van al sy ideale en sy geswoeg op aarde? ’n Mens bring al sy dae deur in hartseer en bekommernis. Selfs nie eens in die nag kry jy rus nie. Alles is sinloos. Absoluut alles. Die beste ding wat met enige mens kan gebeur, is om te eet en te drink en iets van sy harde werk te geniet. En ek het agtergekom dat ook dit uit God se hand kan kom. Wie kan tog eet en geniet sonder dat God dit toelaat en dit ook goedkeur? As God van iemand hou, gee Hy hom wysheid en kennis en geluk. Al die ander moet hard werk en al hulle geld spaar sodat dit weer aan daardie mense van wie God hou, gegee kan word. Ook dit kom tot niks. Dis ’n gejaag na wind. Alles gebeur op ’n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal: • daar is ’n tyd om gebore te word en daar is ’n tyd om dood te gaan; daar is ’n tyd om te plant en daar is ’n tyd om weer die plante uit te trek; • daar is ’n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook ’n tyd om gesond te maak; daar is ’n tyd om dinge af te breek en ’n tyd om dit te herstel; • daar is ’n tyd wanneer ’n mens hartseer is en dan is daar ook weer ’n tyd vir vreugde; daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om weer gelukkig te wees; • daar is ’n tyd om mekaar lief te hê en ’n tyd om weg van mekaar te wees; daar is ’n tyd om mekaar te liefkoos en ’n tyd wanneer liefkosing nie pas nie; • daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om goed te laat wegraak; daar is ’n tyd om op te gaar en ’n tyd om weg te gooi; • daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak; daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly; • daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat; ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede. Watter voordeel kry ’n mens dan op die ou end uit al sy harde werk? God het vir mense ’n baie moeilike werk gegee. Hulle moes probeer om God se werk te verstaan. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is. Wat nou bestaan, het vroeër ook reeds bestaan. En wat nog gaan kom, was alreeds daar. God laat dieselfde dinge weer en weer gebeur. Ek het om my rondgekyk. Toe sien ek: waar die regte dinge moes gebeur, was daar net onreg. Niemand het gedoen wat God vra nie. Ek het gedink daar is ’n tyd om te oordeel en ’n tyd om te straf, en dat God mense wat doen wat Hy sê en sondaars billik sal oordeel. Maar dit sal ongelukkig nie gebeur nie, want volgens God is ons niks beter as ’n dier nie. Wat met ’n mens gebeur, gebeur ook met ’n dier. Die een gaan net soos die ander dood. Albei het dieselfde asem. Die mens is nie beter as die dier nie. Die lewe is regtig sinloos. ’n Dooie mens en ’n dooie dier gaan na dieselfde plek toe terug. En dit is die stof waaruit albei gemaak is. Wie weet of die mens se asem opstyg en of die dier s’n in die aarde in wegsink? Die lewe het my geleer dat die mens dit waarmee hy hom elke dag besig hou, maar moet geniet. Hy kan eintlik nie iets anders nie, want niemand weet wat hierna in die dood gaan gebeur nie. Ek het weer rondom my gekyk en al die slegte dinge raakgesien wat op aarde gebeur. Mense wat deur ander mishandel en verdruk word, het gehuil, maar niemand het hulle getroos nie. Die onderdrukkers het die mag gehad, maar hulle lewe was ook sonder geluk of blydskap. Ek beny daardie mense wat klaar dood is, want hulle is beter daaraan toe as dié wat nog leef. Van almal is die mense wat nog nie gebore is nie, die gelukkigste, want hulle het nog nie al die slegte dinge op aarde gesien nie. Ek het ook agtergekom waarom mense soms so hard werk. Dit is uit jaloesie omdat mense mekaar niks gun nie. Sulke arbeid is absoluut sinloos. Dis niks anders as ’n gejaag agter wind aan nie. Hulle sê dit is dwaas om met jou hande gevou te sit en niks te werk nie, want jy sal van die honger doodgaan. Maar ek sê: Wees eerder met minder tevrede as om heeltyd agter wind aan te hardloop. Ek het ook iets anders in die lewe gesien wat geen sin maak nie. En dit is ’n man wat ongetroud is en geen seun of broer het nie. Elke dag werk hy hard. Alles wat hy sien, koop hy vir homself. Vir wie sloof hy hom nou af? Wie gaan alles geniet wat hy bymekaarmaak? Die lewe is sinloos, absoluut sinloos. Twee is beter as een, want twee mense kan meer regkry as net een. As die een val, kan die ander een hom ophelp. Dit is sleg as die een val en daar is niemand om hom te help nie. ’n Mens kan homself nie warm maak nie, maar as twee saamlê, hou hulle mekaar warm. Een word maklik oorwin, maar twee kan ’n aanval keer. Om nie eens van drie te praat nie. ’n Driedubbele tou breek tog nie maklik nie. Dit is goed as ’n jong, intelligente man oor die land regeer. Al kom hy uit ’n arm familie en al was hy in die tronk, is hy nogtans beter as ’n dom, ou koning na wie niemand luister nie. Ek het gesien hoe al die mense ’n jong koning ondersteun. Baie mense het van hom gehou, maar volgende geslagte het nie eens meer aan hom gedink nie. Dit wys net hoe sinloos alles is. Alles kom tot niks. Maak seker wat jou motiewe is as jy na die huis van God toe gaan om die Here te dien. Gaan eerder soontoe om te luister en te leer as om soos ’n dwaas offers te bring, maar net mooi niks daarvan te verstaan nie. ’n Dwaas doen en sê net altyd die verkeerde dinge. Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie. Onthou, God is baie groot en jy is baie klein. Hy is bo in die hemel en jy is onder op die aarde. Daarom moet jy mooi kyk wat jy sê. Pas op hoe jy oor jou drome praat, want van te veel praat, kom groot probleme. Kort voor lank sê jy verkeerde dinge oor God. [3-4] As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het. *** Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer vir die priester gaan sê jy het dit nie so bedoel nie. Waarom wil jy God met al jou gepraat kwaad maak sodat Hy al jou harde werk vernietig? Pas op vir ydele droompraatjies, want dit maak ’n mens net vol van jouself. Dien God eerder met groot eerbied. Moenie verbaas wees as ’n regering armes onderdruk en daar geen reg en geregtigheid bestaan nie. Die fout lê by korrupte amptenare wat mekaar beskerm. As ’n regeerder in sulke omstandighede ten minste nog die boere help en bystaan, is dit ’n stukkie genade. As jy lief is vir geld, sal jy altyd nog meer wil hê. As jy baie besittings wil hê, sal jy nooit genoeg kry nie. Dit is sinloos. Alles kom tot niks. Hoe ryker jy is, hoe meer mense moet jy kos gee. En watter sin het al jou geld dan? Jy sien dit net, maar geniet dit nooit nie. Of sy maag nou vol is of nie, ’n werker slaap altyd lekker. ’n Ryke slaap min, want hy is oor besittings bekommerd. Ook dit kom tot niks. Ek het ’n verskriklike ding in hierdie lewe sien gebeur: mense spaar hulle geld, maar dan verloor hulle dit in ’n oogwink. Iemand doen ’n slegte transaksie en verloor alles. Dan is daar niks vir sy kinders oor nie. Soos hy sonder enige besittings gebore is, so gaan hy dan ook sonder enige besittings dood. Ten spyte van al sy harde werk kan hy niks saamvat nie. Net soos hy met leë hande in die wêreld gekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande. Dit is mos nie reg nie, want watter nut het al sy harde werk dan? Bowendien is sy hele lewe ook vol swaarkry, kommer en pyn. Die allerbeste ding wat met ’n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur te geniet. Dit is die mens se enigste erfporsie hier op aarde. Wanneer God die mens rykdom gee en hom boonop toelaat om dit te geniet en hom vreugde tussen al die swaarkry hier op aarde gee, is dit ’n spesiale geskenk van God. As God hom bly en gelukkig maak, dink hy glad nie aan hoe kort en swaar die lewe is nie. In hierdie lewe het ek iets gesien wat tragies is: God gee aan iemand rykdom, besittings en ’n baie goeie naam sodat hy aan niks ’n tekort het nie, maar Hy laat hom nie toe om dit te geniet nie. ’n Vreemdeling kom en geniet dit dan. So iets is bitter swaar om te verstaan. Dit maak die lewe sinloos. Iemand mag baie kinders hê en lank leef, maar as hy nie die goeie van die lewe kan geniet nie en ook nie ’n behoorlike begrafnis kry nie, was alles tevergeefs. Iemand wat doodgebore is, is dan beter daaraan toe as hy. Iemand wat doodgebore is, word nooit onthou nie en ontvang ook nooit ’n naam nie. So iemand ken nie die lewe nie, maar het ten minste meer rus as iemand wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie. Albei word in elk geval weer stof. Al leef iemand ook 2 000 jaar, maar hy kan nie die lewe geniet nie, is alles sinloos. Al waarvoor die mens werk, is om sy maag vol te kry, want hongerpyne verdwyn nooit nie. Hoe is ’n wyse beter daaraan toe as ’n dwaas? En watter waarde het dit vir ’n arme om reg te leef? Absoluut niks nie. Dit is ’n gejaag agter wind aan, want dit is beter om iets te besit as om voortdurend daarna te smag. Alles is vooraf bepaal. Wat kan ’n mens daaraan doen? Wie kan tog teen iemand veg wat sterker as jy is? Hoe meer jy probeer, hoe meer deurmekaar en sinloos word die lewe. Wie weet wat vir die mens goed is in sy kort lewe wat soos ’n skaduwee verbytrek? Wie weet wat hier op aarde gaan gebeur? ’n Goeie naam is beter as lekkerruikgoed, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om na ’n plek van rou te gaan as na ’n plek waar mense partytjie hou. Elkeen se sterfdag wag vir hom. Daarmee moet die mens rekening hou. Hartseer is beter as om te lag. Agter ’n strak gesig skuil soms ’n diep insig in die lewe. Iemand wat net geluk najaag, is dwaas. ’n Wyse weet geluk is onmoontlik. Daarom dink hy baie aan die einde. Dit is beter dat wyse mense jou kritiseer as dat dommes heeltyd jou lof besing. Soos die knetterklanke van brandhout in ’n vuur, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit is sinloos en irriteer ’n mens net. Iemand wat dink hy is wys, maar ander afpers, is dwaas. En ’n omkoopgeskenk kan jou vernietig. Die einde van ’n saak is baie beter as die begin. En geduld is beter as om vol van jouself te wees. Beheer jouself en moenie jou humeur verloor nie; dit is net dwase mense wat so maak. Moet nooit vra waarom dit in die goeie ou dae beter was as nou nie, want dit is nie ’n goeie vraag nie. Om baie te besit en ook te weet hoe om reg te leef is wonderlik. Geld kan jou baie help, so ook die insig om reg te leef. Insig is beter, want dit kan jou ook gelukkig maak. Kyk na God se werk in die wêreld. Wie kan reguit buig wat Hy krom gemaak het? God laat die goeie en die slegte gebeur. Of dit goed of sleg gaan, onthou, albei kom van God af. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie. In my sinlose lewe het ek gesien dat goeie mense vroeg doodgaan, terwyl slegte mense lank leef. Dit maak nie eintlik saak of jy goed of sleg leef nie. Moet daarom nie te goed of te regverdig wil wees nie, want jy kan jouself vernietig. Moet ook nie te sleg of te onregverdig leef nie, want dan kan jy dalk te vroeg doodgaan. Kry ’n middeweg, anders word die lewe ondraaglik. Leef met respek vir God, dan sal jy weet hoe om te leef. Wysheid en die insig hoe om reg te leef maak ’n mens sterker as die magtigste leiers. Niemand doen net goed sonder om ook verkeerd te doen nie. Moenie na alle skinderpraatjies luister nie, want dan moet jy dalk jou werkers se beledigings aanhoor. Onthou, jy het ook al baie keer mense beskinder en beledig. Ek het al my kennis en insig gebruik om die lewe te verstaan, maar ek kon nie. Wie weet wat die sin van die lewe is? Dit is te moeilik vir ’n mens om te ontdek. Ek het toe weer begin studeer en navorsing oor wysheid en dwaasheid gedoen. Ek wou weet hoe ’n mens moet leef en wat die gevolg van ’n slegte lewe is. Ek het wel iets ontdek wat erger as die dood is. En dit is dat ’n slegte vrou soos ’n valstrik is. Haar hart is soos ’n vangnet en haar hande soos boeie. As God van jou hou, sal jy van haar kan ontsnap, maar die dwaas val in haar strikke. Al hierdie kennis en insig het ek stukkie vir stukkie gekry toe ek die lewe bestudeer het. Daar is nog iets wat ek gesien en waarop ek geen antwoord het nie. En dit is dat jy dalk nog ’n goeie man tussen duisend mense sal kry, maar nie so ’n vrou nie. Ek het tot die slotsom gekom dat God die mens maar ’n eenvoudige wese gemaak het, maar dat hy altyd moeilike vrae vra. Wie is regtig slim? En wie het die antwoord op al die vrae? Die mens wat baie weet, se gesig straal van vriendelikheid. Doen wat die regeerder sê. Moenie haastige beloftes aan God maak nie. Omdat ’n regeerder kan doen wat hy wil, moet jy nie te lank by hom bly of ’n slegte saak ondersteun nie. Die regeerder se woord is wet. Wie kan hom aanspreek oor wat hy doen? Solank jy maar doen wat die regeerder sê, is jy veilig. Die wyse weet wat om op die regte tyd te sê en te doen. Vir alles is daar ’n tyd en ’n uur, maar die mens ken dit nie. Niemand weet wat gaan gebeur nie en niemand kan jou ook vertel wat voorlê nie. ’n Mens is magteloos. Hy kan nie die wind keer nie, hy kan nie sy sterfdag uitstel nie, hy kan nie militêre diens vermy nie en hy kan nie alles met sy rykdom regkry nie. Toe ek oor alles in die lewe nagedink het, het ek besef sommige het baie mag en sommige nie. Dié wat nie mag het nie, moet altyd ly onder dié wat mag het. Ek het gesien hoe slegte mense begrawe word en hoe mense hulle prys, terwyl goeie mense uit hulle stad moet vlug en vergeet word. Dit wys net hoe sinloos en deurmekaar die lewe is. Mense doen maklik verkeerde dinge omdat dit lank vat voordat die skuldiges gestraf word. ’n Slegte mens kan selfs 100 misdade pleeg en nog steeds lank leef. Die mense sê mos altyd: “As jy vir God bang is, sal dit met jou goed gaan. Slegte mense wat God nie dien nie, sal net teëspoed ervaar. Hulle lewe is soos ’n skaduwee en hulle lewensjare min.” Dit is egter verkeerd. Net die teenoorgestelde gebeur. Met goeie mense sal dit sleg gaan en met slegte mense goed. Dit wys net weer hoe absurd die lewe eintlik is. Ek het daarom besluit dat wat die mens eintlik nodig het, vreugde is. Niks is beter as om te eet en te drink en die lewe te geniet nie. Dít kan die mens help om die sinloosheid te verwerk van hierdie lewe wat God ons gegee het. Ek het dag en nag gewerk om die lewe en die dinge wat in die wêreld gebeur, te probeer begryp. Uiteindelik moes ek opgee, want die mens kan nooit God se werk deurgrond nie. Al probeer hy hoe hard, sal hy die sin van die lewe nooit kan ontsluit nie. Ek het die lewe ondersoek en besef dat alles voorafbepaal is. God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie. Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos. Of iemand nou goed of sleg is, en of iemand offer of nie offer nie, maak nie eintlik saak nie. ’n Goeie mens is nie in ’n beter posisie as ’n slegte mens nie en iemand wat beloftes voor God aflê, is nie beter as iemand wat dit nie doen nie. Daar is ’n slegte ding in hierdie wêreld en dit is dat almal dieselfde lot deel. Mense gee hulle aan sinlose dinge oor en bedink allerlei booshede. Daarna gaan hulle dood. Almal wat leef, het egter ’n skrale troos; amper soos die waardelose voordeel van ’n brandsiekhond wat nog leef teenoor ’n sterk leeu wat klaar dood is. En dit is dat die lewende weet hy gaan sterf, terwyl die dooie dit nie weet nie. Die dooie kan niks meer geniet nie. Hy word heeltemal vergeet. Selfs sy liefde, haat en jaloesie gaan saam met hom dood. Hy het geen deel meer aan enigiets wat op aarde gebeur nie. In sulke omstandighede moet jy jou kos met vreugde geniet en jou wyn met blydskap drink. God het dit lank gelede al so bepaal. Dra die regte klere om te wys hoe gelukkig en bly jy is. Laat jou klere wys dat jy die lewe tot ’n fees verklaar het. Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees in hierdie sinlose wêreld waarin jy jou dag en nag moet afsloof. Werk hard en probeer dit geniet. Doen wat jou hand vind om te doen, want in die blyplek van die dooies waarheen jy op pad is, werk niemand nie. Daar is ook geen kennis of wysheid nie. Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens. Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie. Op ’n keer was daar ’n klein dorpie met ’n paar inwoners. ’n Groot sterk koning het teen die dorpie opgetrek. Hy het dit omsingel en die mure begin afbreek. Binne-in die dorpie was daar ’n arm man, maar baie wys. Deur sy kennis en insig het hulle die koning se aanslag afgeweer. Maar na ’n tydjie het niemand meer aan dié wyse man gedink nie. Toe het ek vir myself gesê dit is tipies van die lewe. Wysheid is baie beter as krag en mag, maar die arm wyse sal altyd verag word. Niemand luister na hom nie. Om rustig na die diep gedagtes van ’n wyse te luister is baie beter as die geskree van ’n politieke leier in die geselskap van dwase mense. Wysheid is beter as oorlogswapens. ’n Dwaas kan egter alle goeie dinge met een woord vernietig. Dooie vlieë wat in ’n apteker se medisyne beland, kan dit alles laat sleg word sodat dit begin stink. So maak ’n dwase mens ook. Met net ’n bietjie dwaasheid kan hy ’n goeie naam deur die modder sleep. Die wyse se pad loop op die roete van vreugde en geluk. Die dwaas se pad loop op die roete van ellende en ongeluk. ’n Dwaas leef op so ’n manier dat almal sy dwaasheid agterkom. As die regeerder hom vir jou vererg, moet jy nie jou goed vat en loop nie. Bly eerder kalm sodat die situasie nie vererger nie. Daar is een slegte ding wat ek in die lewe gesien het en wat my bly hinder. En dit is iets wat magsfigure doen. Hulle stel dwase mense in hoë posisies aan terwyl die ware kundiges vernederende werkies moet verrig. Ek het slawe op perde gesien, terwyl vername mense soos ’n slaaf met hulle voete moes loop. Wie ’n gat vir iemand anders grawe, kan self daarin val. Wie ’n muur afbreek, kan deur ’n slang gepik word. Wie stene losbreek, kan beseer word. Wie hout kap, kan seerkry. As die byl stomp is omdat niemand dit geslyp het nie, moet ’n mens dubbel so hard werk. Wat help wysheid en kundigheid ’n mens nou in sulke gevalle? As die slang eerste byt, is die slangvanger se werk nutteloos. Ook hier help vaardigheid niks. ’n Wyse se woorde is aangenaam om na te luister. ’n Dwaas vernietig homself deur sy woorde. As ’n dwaas begin praat, hoor jy sommer die domheid. Hoe meer hy praat, hoe waansinniger word dit. ’n Dwaas praat aanmekaar, maar niemand weet wat môre of na die dood gaan gebeur nie. Daarom is dit beter om stil te bly. Die dwaas maak hom so moeg met sy gepraat dat hy nie eens die pad huis toe kan kry nie. Dit gaan sleg met die land wie se regeerder ’n kind is en wie se raadgewers vroegdag al begin partytjie hou. Gelukkig is die land wie se koning die regte dinge doen en wie se leiers op die regte tyd met die fees begin en dit met waardigheid en sonder dronkgelag kan vier. Luiheid veroorsaak dat die dak begin insak en dat dit aanmekaar lek. ’n Fees maak jou gelukkig en wyn beur jou op, maar albei kos geld. Moenie die koning selfs eens in jou gedagtes kritiseer nie. En moenie die magtiges eens in jou slaapkamer slegsê nie, want die voëltjies kan dit dalk hoor en jou woorde aan hulle gaan oorvertel. Waag soms ’n kans met ’n belegging. Wie weet, dit verras jou dalk nog eendag. Versprei dit net oor ’n paar plekke, want ’n mens weet nooit watter teëspoed jou nog in hierdie land kan tref nie. Alles is vooraf bepaal. As die wolke vol reën is, sal hulle dit op die aarde uitgiet. En as ’n boom afgekap word, sal dit op die bestemde plek val. Of dit nou noord of suid is, maak nie saak nie. Dit sal op die regte plek val. Moenie heeltyd die wind dophou en na die wolke opkyk nie, want die reën sal op sy bepaalde tyd kom. Werk liewer voluit voort. Soos jy nie weet hoe lewe in ’n vrou wat verwag se buik ontstaan nie, net so min verstaan ’n mens die werk van God. Saai in die oggend, maar ook in die aand, want jy weet nooit watter van die twee gaan opkom nie. Hoe mooi is lig nie, en hoe lekker die strale van die son! As iemand lank leef en oud word, moet hy die lewe geniet. Hy moet egter ook aan die dood dink en onthou dat die tyd na die dood lank gaan duur. Alles is sinloos. Daar is niks om na uit te sien nie. Jongmens, geniet daarom jou lewe en wees altyd gelukkig. Gaan oral waar jou hart en jou oë jou lei. Leef altyd voluit. Doen waarvan jy hou. Maar onthou, God sal jou nog oordeel. Jy sal aan Hom rekenskap moet gee van alles wat jy doen. Jongmens, verban alle verdriet en pyn uit jou hart, want ’n mens is nie vir altyd jonk nie. Jonkwees kom ook tot niks. Dink aan God wat jou geskep het terwyl jy nog jonk is. Voordat die swaar dae kom en jy sal sê: “Die lewe is nie meer lekker nie.” Dit is daardie tyd in ’n mens se lewe wanneer die son se strale vir jou dof begin word en jy die maan se lig en die sterre se geflikker in die aand skaars nog sien. Dit is wanneer jou hande begin bewe, die bene moeilik loop, die tande moeilik kou omdat hulle so min is, en die oë sleg sien, die ore nie meer die straat se geraas hoor nie, die stem sagter en dowwer word. En as die voëls vroegoggend begin koer, staan jy op sonder dat jy hulle eens hoor. Dit is wanneer jy vir steil opdraandes en baie ander dinge bang word omdat jy te swak geword het. En terwyl die amandelboom bloei, die sprinkaan hom vol eet en die kapperkruid blom, sterf die mens. In die strate sal hulle die doodsberig vertel. Dan sal hulle saamkom om hom te begrawe. Dit is soos ’n silwertou wat afbreek by ’n put, soos die goue skepemmer wat breek, soos die drinkbeker wat stukkend breek en soos die wiel wat by die put inval. Dan word die mens weer stof soos vroeër, en sy lewensasem gaan terug na God toe waar dit vandaan gekom het. Die lewe is sinloos. Absoluut sinloos, so sê die Prediker. Die Prediker het baie van die lewe af geweet. Hy het aangehou om die mense te leer. Hy het baie gestudeer, die lewe nagevors en talle spreuke neergeskryf. Hy het probeer om fyn te formuleer en dinge te beskryf soos dit was. Sy woorde was soos ’n skerp stok waarmee ’n mens diere aanjaag. En sy spreuke was soos spykers wat voortdurend ingeslaan moet word. Sy woorde was betroubaar omdat dit van God af kom. Die Prediker het gesê: “My seun, aan boeke skryf kom daar nooit ’n einde nie. Baie studie put ’n mens uit.” Een ding bly nog oor, en dit is dat almal God moet vrees en sy voorskrifte moet gehoorsaam. Onthou, God kyk na wat almal doen. En God self sal besluit of dit goed is of sleg. Hierdie is die liefdesliedere van Salomo. Soen my weer en weer, want jou liefde smaak soeter as wyn. Hoe lekker ruik jou reukmiddel en hoe mooi klink jou naam tog nie. Al wat ’n jongmeisie is, is op jou verlief. Vat my, dan hardloop ons weg. Wees vir my soos ’n koning en neem my na jou kamer toe. Saam sal ons gelukkig wees. Ons sal mekaar geniet en onsself in ons liefde verloor. Ek weet waarom al die jongmeisies so gaande oor jou is. Vroue van Jerusalem, ek is donker, maar ook mooi. Donker soos die tente van Kedar en mooi soos die tentseile van Salma. Moenie sleg dink van my omdat ek so bruin is nie. Dit is die son wat my so bruin gebrand het. My broers was kwaad vir my en het my toe in die wingerd laat werk. Ek moes elke dag in die skerp son werk. Sê my, my liefling, waarheen vat jy vandag jou vee? Waar staan julle teen die middaguur? Kom, sê my, dan hoef ek jou nie tussen die ander herders se kuddes te gaan soek nie. Liefstetjie, weet jy dan nie waar nie? Volg net die trop se spoor tot vlak by die herders se hut. Laat jou bokke daar wei. Daar sal jy my kry. My liefste, jy is so mooi soos ’n jong vul in die koning se wa. Hoe pragtig laat die oorringe jou wange lyk en die juwele jou nek. Ons moet vir jou goue oorringe met sulke silwer puntjies laat maak. Terwyl die koning van my hart op die bank gelê het, het my parfuum hom bekoor. My liefling is soos ’n sakkie mirre wat ek tussen my borste dra. My liefling is soos die geurige blomme wat wild in En-Gedi se wingerde groei. Hoe mooi is jy nie, my liefste. Jou oë is so sag en lieftallig soos dié van ’n duif. Hoe mooi en aantreklik is jy nie, my liefling. Van groen gras is ons bed gemaak. Van seders is ons huisie se plafon en van sipresse die dak. Ek is soos ’n veldblommetjie wat in Saron groei en soos ’n lelie in die vallei. Tussen al die ander vroue is my vriendinnetjie soos ’n lelie tussen droë takke. My vriend is ook anders. Hy is soos ’n appelboom in ’n bos. In sy skadu vind ek rus en sy vrugte is louter genot. Hy het my na ’n feesplek toe gevat en almal kon sien hoe lief hy my het. Ek is uitgeput van al die baie liefhê. Bring vir my rosyntjiebrood en appels, dat ek gou weer kan sterk word. Sy linkerarm is onder my kop terwyl sy regterarm my vasdruk en omhels. Vroue van Jerusalem, sweer by die ribbok en die takbok dat julle nie die liefde sal wakker maak nie tot dit tyd is daarvoor. Luister mooi. Daar ver klink my liefling se stem. Hy is op pad na my toe; hy hardloop oor die berge en gly oor die heuwels. My liefling is so rats soos ’n jong bokkie en so vlug soos ’n takbok. Hy staan al langs die muur by die venster en kyk deur die traliewerk na binne. Staan op, my liefste, en kom saam met my. Die winter is weg en al die reëns is verby. Oral staan die veldblommetjies in bloei en oral begin die voëls sing. Selfs die tortels hoor ’n mens al koer. Die eerste vye is ryp en die eerste trossies hang in die wingerd. Oral is daar net die geur van wingerd en van veld. Kom, my liefste, staan gou op en kom saam met my. Jy is soos ’n duifie wat in ’n rotsskeur skuil. Laat my gou weer net jou gesiggie sien en jou stemmetjie hoor. Hoe lieflik is die klank van jou stem tog, en hoe mooi jou gesig. Vang die klein jakkalsies, vang hulle gou voor hulle die wingerd van ons liefde verwoes. My liefling is myne en ek is syne. Hy is weer weg om sy vee tussen die lelies te laat wei. Eers as die aandwind opsteek en die skadu’s verdwyn, kom hy weer terug. Kom, my liefling, kom gou weer soos ’n jong bokkie en ’n bergbok oor die ruwe berge na my. Een aand op my bed het ek na my geliefde gesmag. Na hom het ek gehunker, maar hy het nooit gekom nie. Toe het ek opgestaan en deur die strate en elke stegie geloop op soek na my geliefde, maar ek kon hom nêrens vind nie. Die nagpolisie het my op hulle rondtes gekry en ek het gevra of hulle dalk my geliefde gesien het. Net ’n klein entjie verder het ek hom toe gekry. Ek het hom styf vasgehou en wou hom nie los nie. Ons is saam na my ma se huis toe en na die kamer waar ek gebore is. Vroue van Jerusalem, beloof my en sweer by die takbokke en ribbokke om nie die liefde wakker te maak nie voor dit tyd is daarvoor. Wat kom daar uit die woestyn soos ’n rookwolk aan? Wat is dit wat so na mirre en wierook ruik? En waar kom die reuk van speserye vandaan? Dit is Salomo op sy drastoel wat daar aankom. En 60 van sy lyfwagte, die keur van Israel se leërmag, wat langs hom loop. Almal is vaardig met die swaard en ervare soldate. Elkeen met ’n swaard langs sy sy om die koning teen die gevare van die nag te beskerm. Salomo het sy eie drastoel van die mooiste Libanonhout gemaak. Die pote is met silwer, die leuning met goud en die sitplek met ’n pers materiaal oorgetrek. Vroue van Jerusalem, gaan buitentoe en kyk na Salomo. Hy het die kroon op wat sy ma nog vir hom op sy troudag gegee het, dié dag toe hy so vol vreugde en blydskap was. Hoe pragtig is jy nie, my liefste. Hoe glinster jou oë nie van liefde agter jou sluier nie. Jou golwende hare laat my dink aan die dartelende bokkies wat teen Gilead se heuwels afhuppel. Jou wit tande is soos ’n kudde pasgebore skape wat skoon gewas is. Elkeen pas bo en onder volmaak op mekaar. Jou lippe is soos ’n purper lint en hoe mooi is jou mond tog nie. Jou wange agter die sluier gloei soos twee granate. Dit is mooi en aanloklik. Jou nek is elegant soos die Dawidstoring en jou halssnoer blink soos 1 000 skilde. Jou twee borste is soos die tweeling van ’n ribbok wat tussen die lelies wei. By mirreberg en wierookberg wil ek vertoef totdat die oggendwind opkom en die nag begin verdwyn. Hoe mooi is jou liggaam nie, my liefste. Alles is so volkome en volmaak. Liefste, laat ons van die baie gevare af wegvlug. Kom saam met my van die Libanonsberge af, van die Amana se top, van die Senir en die Hermonberg waar die leeus en die tiere bly. Jy het my hart gesteel, my lief. Jou oë se sagtheid en die krale om jou nek het my hart van liefde laat klop. My liefste, hoe kosbaar is jou liefde nie vir my nie. Jou liefde is soveel beter as wyn en jou parfuum geuriger as enige spesery. Jou lippe proe heuningsoet, jou tong smaak soos melk en jou klere ruik na die seders van die Libanon. My liefste, jy is soos ’n tuin met ’n hoë muur om. Jy is ’n fontein waarvan net ek kan drink, ’n put wat net aan my behoort. Jy is soos ’n granaattuin wat blom. Jy is ’n lushof met die allermooiste vrugtebome en die allerheerlikste geure. By jou is daar die allerkosbaarste geure van nardus en saffraan, van kalmoes en kaneel, van mirre en al die ander lekkerruikkruie. Jy is ’n fontein in my tuin. ’n Fontein van lewende water en net so vars soos die strome van die Libanonsberge. Steek op, Noordewind, en kom, Suidewind. Waai deur my liefling se tuin en vul die lug met die allersoetste geure. Dan sal my liefling na sy tuin toe kom en van sy heerlike vrugte eet. My liefste, ek het na my tuin toe gekom. Ek het mirre gepluk en dit met speserye gemeng. Ek het heuning geëet en wyn met melk gedrink. Julle twee verliefdes moet eet en van die liefdesdrank drink. En gee julle dan oor aan die liefde tot die oggend aanbreek. Een nag het ek van my geliefde gedroom. Hy het aan die deur kom klop en gesê: “Liefste, maak oop. My duifie, laat my inkom. Ek was heelnag buite en my kop is nat van die dou en my hare van die reën.” “Ek kan nie,” het ek vir my geliefde gesê. “So pas het ek my uitgetrek en waarom weer aantrek? My voete het ek so pas gewas en waarom dit weer vuilmaak?” My geliefde het toe die deur probeer oopkry en my hart het van opwinding gebons. Naderhand het ek vinnig opgespring om die deur oop te maak. My hande was vol parfuum en my vingers het van die mirre gedrup. Ek het die handvatsel gedraai en die deur oopgeruk, maar my geliefde was weg. Ek wou net sy stem weer hoor en het hom in die strate gaan soek, maar tevergeefs. Oral het ek geroep, maar hy was weg. Die nagpolisie het my in die strate gekry en my aangerand. Een van die wagte op die muur het selfs my sluier afgeruk. Vroue van Jerusalem, belowe my dat as julle my geliefde kry, julle hom sal vertel. Van my liefde moet julle hom vertel en vir hom sê dat ek na hom gesmag het. Mooiste onder die vroue, waarom moet ons hom dit alles vertel? Wat maak hom dan so anders? O, my liefling is anders. Hy is mooier en sterker en beter as 1 000 ander. Sy voorkop blink soos suiwer goud en sy mooi, swart hare krul soos dadeltrosse in sy nek. Sy oë lyk soos twee duiwe by die stroom wat hulleself so pas gewas het. Sy wange is so mooi soos ’n tuin vol lekkerruikspeserye. Sy lippe is soos lelies nat van mirre. Sy hande is soos goudstawe waarin juwele ingelê is. Sy liggaam is soos ivoorpilare wat van al die saffiere gloei. Sy bobene is soos marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Hulle is so sterk soos die seders van die Libanon. Sy mond is lekker om te soen. Alles aan hom begeer ek. Vroue van Jerusalem, dit is dan hoe my liefling lyk. Jy is die allermooiste van die vroue, maar waar is jou liefling dan? Sê ons, dan help ons jou soek. Hy is na sy tuin toe waar die lekkerruikkruie groei. Daar wei sy kudde terwyl hy die lelies pluk. My geliefde is myne, net myne. En ek is syne, net syne. Julle sal hom by die lelies vind waar hy sy kudde laat wei. My liefste, jy is so asemrowend soos Jerusalem, so mooi soos die stad Tirsa en so indrukwekkend soos ’n weermag met swaaiende vaandels. Kyk weg van my, my liefste, want jou oë verkrummel al my weerstand. Jou mooi golwende hare lyk soos bokke wat teen die heuwels van Gilead afhuppel. Jou tande is so wit soos ’n trop skape wat so pas gewas is. Bo en onder pas elke tand op mekaar. Jou wange gloei agter jou sluier soos twee rooi granate. Al is daar 60 vroue, almal koninginne, of 80 byvroue of talle ander jong vroue om my, dan kies ek jóú nog bo almal, my liefste. Jy is jou ma se lieflingskind en die mooiste van alle vroue. Koninginne, byvroue en jongmeisies moet jou skoonheid prys. “Wie is sy?” sal hulle vra. “Sy is so verruklik soos die vroeë oggend, so wondermooi soos die volmaan, so stralend soos die gloeiende middagson en so asemrowend soos soldate wat hulle baniere rondswaai.” Ek is na my tuin toe waar die neutebome staan. Ek wou sien of die palms al blom, die wingerd al uitloop en die granate se bloeisels al bot. En daar het ek na my geliefde verlang soos die drywer van ’n strydwa na ’n oorlog. Kom, nooientjie van Sullam, kom dans hier vir ons. Kom, sodat ons mooi kan kyk hoe jy lyk. Wat is daar te sien aan die Sullamitiese meisie wat tussen die mense deur dans? Hoe wondermooi is jy tog nie! Hoe fraai en fyn lyk jou voete nie in jou sandale nie. Jou heupe se rondings is die werk van kunstenaarshande. Jou naeltjie is so verruklik soos ’n beker vol wyn. Jou maag is so mooi soos ’n hoop koring met lelies omring. Jou borste is soos twee bokkies, die tweeling van ’n ribbok. Jou nek is so slank soos ’n ivoortoring. Jou oë is so helder soos die poele naby die poorte van Hesbon. Jou neus is soos die toring van Libanon van waar ’n mens Damaskus kan sien. Jou kop is soos die Karmel en jou hare se vlegsels soos die fynste satyn. Dit is so mooi dat jy selfs die koning bekoor. Hoe wondermooi is jy tog nie en hoe volmaak die genot van jou liefde. Jy is so lieflik en slank soos ’n palmboom en jou borste is soos dadeltrosse. Ek het vir myself gesê dat ek nog in hierdie palm wil klim en van sy vrugte wil pluk. Jou borste is soos twee druiwetrosse en jou asem ruik na appels. Jou mond proe soos die edelste wyn wat saggies oor my lippe en tande vloei. Ek behoort aan my liefling wat na my smag en verlang. Kom, my liefling, kom ons gaan loop in die veld en oornag in die dorp. Vroegoggend besoek ons die wingerd en kyk of die bome al bot en die granaatboom se bloeisels al blom. Daar sal ek jou dan al my liefde wil gee. Die liefdesappels se geure is oral te ruik. Naby ons deur groei die heerlikste vrugte en vir my liefling het ek daarvan bewaar. Was jy tog maar vir my ’n broer en iemand wat ook aan my ma gedrink het. As ek jou dan in die straat gekry het, kon ek jou soen en niemand sou iets sê nie. Ek sou jou dan na my ma se huis toe geneem het en daar kon jy my van die liefde leer. En ek sou jou ’n slukkie van my kruiewyn gee en jou van my granaatlikeur laat drink het. Jou een arm sal onder my kop rus en met die ander sal jy my omhels. Vroue van Jerusalem, beloof my om my tog nie in die liefdespel te steur nie. Wie kom daar hand aan hand uit die woestyn met haar geliefde aan? Onder die appelboom het ek jou bemin. Op die plek waar jy gebore is en waar jou ma jou met pyn in die wêreld gebring het, het ek jou liefgehad. Gee my die enigste plek in jou hart. Dra my binne-in jou soos ’n mens ’n seëlring aan jou arms dra. Liefde is sterker as die dood en die liefdesdrang sterker as die doderyk. Die gloed van warm liefde gloei soos ’n groot vuur. Geen water kan die liefdesgloed demp nie en riviere kan dit nie blus nie. Elkeen wat liefde met geld en besittings wil koop, word verwerp. Ons het ’n kleinsus wie se borsies nog klein is. Wat sal ons doen as iemand met haar wil trou? As sy standvastig is, sal ons haar help en as sy ligsinnig is, sê ons sommer net “Nee!” Ek is deugsaam en my borste is vol. My liefling weet ek is gelukkig by hom. Salomo het ’n wingerd in Baäl-Hemon en verhuur dit aan boere wat elk 1 000 silwerstukke betaal. Salomo, my wingerd is mooi en is myne alleen. Hou maar jou wingerd en duisende silwer. Vir jou werkers gee ek selfs nog 200 meer. My liefste, jy is êrens in die tuin waar jou vriende na jou luister. Laat ek ook tog jou stemmetjie hoor wat sê: Kom, my liefling, kom gou na my. Wees snel soos die ribbok en rats soos ’n takbok se lam op die kruieberge. Hierdie is ’n aantal boodskappe in verband met Juda en Jerusalem wat God vir Jesaja die seun van Amos in die vorm van visioene gegee het. Hy het hierdie visioene gesien in die tyd toe Ussia, Jotam, Agas en Hiskia die konings van Juda was. Hemel en aarde, julle moet getuies wees van wat die Here gesê het: Die kinders wat Ek grootgemaak en versorg het, het nou teen My in opstand gekom. ’n Dier soos ’n bees ken sy baas se stem en selfs ’n donkie weet goed waarheen om te gaan om kos te kry, maar nie my volk Israel nie. Dit maak nie saak wat Ek doen nie, hulle verstaan niks. Daar wag baie swaarkry op julle, julle sondige volk, want julle almal is skuldig. Julle is ’n klomp korrupte, nikswerd kwaaddoeners! Julle het My, die Here, die heilige God van Israel, verwerp en die neus vir My opgetrek. Dit maak nie saak wat Ek probeer doen het nie, julle het die rug vir My gedraai en julle eie rigting ingeslaan. Wat gaan aan met julle, hoekom hou julle aan om in opstand te kom? Hou julle daarvan om gestraf te word? Kyk hoe lyk julle al, julle is al siek na liggaam en gees. Van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan julle nie. Julle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde. En hulle is nie skoongemaak of verbind of selfs met salf behandel nie. Kyk hoe lyk julle land, dis verwoes. En julle stede is afgebrand. Julle kan maar net sit en kyk hoe vreemde mense julle lande kaalstroop en verwoes sonder dat julle iets daaromtrent kan doen. Dit is nog net Jerusalem wat oor is. Nie dat dit baie beteken nie, want die stad is so weerloos soos ’n oppasser se hutjie in ’n wingerd of ’n skerm in ’n groentetuin. Jy kan maar sê die stad is klaar omsingel, dit moet nog net ingeneem word. As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het. Julle is eintlik net so skuldig soos daardie twee dorpe. So, luister nou na die Here, julle leiers van Sodom. Let op, mense van Gomorra, want God wil julle iets leer. Wat het Ek met hierdie klomp offers van julle te doen? wil die Here weet. Watter betekenis het skape wat geoffer word of die vet van voerbeeste? Ek steur My doodeenvoudig nie meer daaraan nie. Selfs die bloed van beeste, skape en bokke is nie meer vir My aanvaarbaar nie. Wie het julle gevra om die voorportale van my tempel so te kom vertrap met hierdie waardelose offers? Julle trap net die plek vuil met al hierdie diere. Hou op om hier aan te kom met julle offers. Ek sien reg deur julle skynheiligheid! Julle wierookoffers stink vir My! Ek kan dit nie vat dat julle aanhou sonde doen en dan nog steeds ewe vroom hier na die tempel toe kom vir die nuwemaansfeeste en sabbatvierings nie. Ek haat julle rusdae en feeste. Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie. Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, Ek kyk nie eens na julle nie. Julle kan soveel bid as wat julle wil, Ek sal nie na julle luister nie, want julle is almal ’n klomp moordenaars. Gaan kry eers julle lewens reg. Hou op om al hierdie verkeerde goed te doen. Los die slegte goed waarmee julle besig is! Leer eerder hoe om weer goed te doen en sorg dat mense billik en onpartydig behandel word. Help dié wat misbruik word en beskerm die regte van dié wat nie vir hulleself kan sorg en nie al die geleenthede in die lewe het nie. Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk. As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak, maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het. Jerusalem, hoe het jy nie verander nie! Die stad wat eens op ’n tyd getrou was aan die Here het soos ’n ontrou straatvrou geword wat agter ander mans aanloop. Daar was ’n tyd dat jy ’n plek was waarin eerlike en ordentlike mense gebly het, maar jy het nou ontaard in ’n wegkruipplek vir moordenaars. Eens op ’n tyd was jy soos egte silwer, so mooi en so skoon, maar nou het jy soos ’n stuk nuttelose lood geword, soos goeie wyn wat met water verdun is en na niks smaak nie. Jou leiers is oproermakers, hulle grootste vriende is skelms, want hulle is almal korrup en alte lief vir omkoopgeskenke. Maar as dit by die weeskinders en die weduwees kom wat gehelp moet word, wil hulle niks met die saak te doen hê nie. Daarom sê die Here, die magtige God van Israel wat seggenskap het oor alles: Ek sal met julle, my vyande, afreken sodat julle My nie verder kan pla nie. Ek gaan teen julle optree. Soos ’n mens silwer smelt en al die onsuiwerheid daaruit haal, so gaan Ek julle smelt en al die gemors uit julle uitkry. Ek sal weer vir jou goeie leiers en raadgewers gee soos dié van vroeër. Dan sal Jerusalem weer die stad van geregtigheid wat getrou is aan die Here, genoem word. Omdat die Here regverdig is, sal Hy al die mense van Jerusalem red wat hulle sonde bely en terugdraai na Hom toe. Maar Hy sal al die sondaars en opstandiges saam vernietig. Hy sal dié wat die rug vir Hom gedraai het, voor Hom wegvee. Dan sal julle skaam kry oor die akkerbome wat julle aanbid het as heilige bome en die tuine waar julle so graag geoffer het. Dan sal julle self soos verdroogde akkerbome lyk, soos ’n tuin wat nooit water kry nie. Die sterkste onder julle sal soos ’n hoop droë strooi wees. Die vonk wat hierdie strooi aan die brand steek en laat uitbrand, is niks anders as julle eie dade nie. Daar sal niemand wees wat hierdie vuur kan blus nie. Hierdie is die boodskap wat die Here vir Jesaja, Amos se seun, gegee het oor Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die tempel van die Here in Jerusalem die belangrikste plek op aarde word. Mense van oor die hele aarde sal daarheen stroom om daar te kom aanbid. Volke sal daarnatoe kom en vir mekaar sê: “Kom ons gaan na die berg van die Here toe, waar die tempel van Israel se God is, sodat Hy ons kan leer wat Hy van ons verwag en ons dan daarvolgens kan lewe. Want die woord van die Here kom uit Jerusalem uit en Hy maak sy wil bekend van Sion af.” Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei word om te gaan veg nie. Kom, afstammelinge van Jakob, kom ons leef soos die Here van ons verwag om te leef. Here, U het die afstammelinge van Jakob verwerp omdat hulle hulle oorgegee het aan Mesopotamiese bygelowe en net soos die Filistyne hulle met toordery besig hou. Hulle is al net so bygelowig soos hulle nuwe vriende met wie hulle omgaan. Hulle is skatryk en baie magtig met al die perde en strydwaens wat hulle besit. Maar hulle land is vol afgode en hulle aanbid hierdie nikswerd goed wat hulle met hulle eie hande gemaak het. So laag het die mense al gedaal. Here, moenie hulle hiermee laat wegkom nie! Gaan kruip weg in die grotte of in gate in die grond uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. Daar kom ’n dag waarop die hoogmoediges tot ’n val kom en die verwaandes op hulle plek gesit sal word. Op dié dag sal dit net die Here wees wat geëer word. Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is, op hulle plek sit. Hy sal al die hoë sederbome van die Libanon en die groot akkerbome van Basan tot teen die grond afkap. Hy sal al die berge en heuwels met die grond gelykmaak. En die versterkte mure met hulle wagtorings sal Hy omgooi en vernietig. Hy sal al die groot handelskepe op die oop see en in die hawens vernietig. [17-18] Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is op hulle plek sit, en al die afgode sal vernietig word. Net die Here alleen sal geëer word. *** Wanneer die Here die aarde met ’n aardbewing skud, sal die mense in grotte of in gate in die grond gaan wegkruip uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. Op daardie dag sal hulle hulle wonderlike goue en silwerafgode net daar in die grotte en gate laat agterbly vir die vlermuise en die rotte. Wanneer die Here die aarde met ’n aardbewing skud, sal die mense in grotte en in skeure in die rotse gaan wegkruip uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. Moenie op mense staatmaak nie, dit is net so dan blaas hulle hulle laaste asem uit. Want wat beteken ’n mens nou eintlik? Luister nou mooi, die Here die Almagtige gaan alles en almal waarop die mense van Jerusalem en Juda gereken het van hulle af wegvat. Al hulle kos, water en ander noodsaaklike lewensmiddele. Ook hulle leiers, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, amptenaar, offisier, hooggeplaaste, raadgewer, ambagsman en selfs dié wat met hulle toordery ’n invloed op mense uitoefen. Hy sal kinders en onervare jongmense aanstel om oor die volk te regeer. Hulle sal al die gesag hê. Mense sal mekaar uitbuit en benadeel. Kinders sal nie respek hê vir volwassenes of hulle gesag aanvaar nie. Nikswerd, oneerlike mense sal die eerbare mense uitlag. Mense van dieselfde familie sal in daardie tyd vir een van hulle familielede sê: “Luister, jy het darem nog klere, wees jy ons leier. Skep orde in hierdie chaos om ons!” Maar hy sal sê: “ Nee, dankie, ek stel nie belang om leiding te neem nie. Ek het nie eens genoeg kos en klere vir my eie gesin nie. Ek wil nie betrokke raak nie.” Jerusalem waggel soos iemand wat op sy laaste bene is en Juda het in duie gestort omdat hulle in woord en daad teen die Here in opstand gekom het en geweier het om sy gesag te aanvaar. Hulle gesigsuitdrukkings verraai hulle, hulle is skaamteloos bevooroordeeld. Hulle doen openlik sonde net soos Sodom, hulle probeer dit nie eers wegsteek nie. Daar wag geweldige swaarkry op hulle, maar hulle het dit oor hulleself gebring. Sê vir dié wat aan God gehoorsaam gebly het dat dit met hulle goed sal gaan. Daar wag ’n beloning vir hulle. Maar met die slegte mense sal dit moeilik gaan. Dit wat hulle aan ander mense gedoen het, sal nou na hulle toe terugkom. Fortuinsoekers en afpersers buit my volk uit. My volk, jou leiers is besig om jou te mislei en jou van koers af te bring. Die Here neem sy plek in die hofsaal in en die groot aanklaer is gereed om sy saak te stel. Die leiers en die hoë amptenare kom eerste aan die beurt: “Julle het my volk soos ’n wingerd gestroop en nou sit julle met die arm mense se besittings in julle huise. Wat het julle besiel om my volk so in die grond in te vertrap en die hulpeloses so uit te buit?” vra die Here my God, die Almagtige. Daarna sal die Here die vroue van Jerusalem aankla: “Kyk net ’n bietjie hoe verwaand is die vroue van Jerusalem. Hulle loop neus in die lug en knipoog skelm vir die mans om met hulle rond te flerrie. Hulle gee sulke klein trippeltreetjies om die ornamente om hulle enkels te laat klingel om aandag te trek. Daarom sal Ek,” sê die Here, “elkeen se sluier afruk en haar kop kaal laat skeer. Ek sal hulle met hulle kaal koppe in die straat laat rondloop.” Op dié dag sal die Here al hulle versiersels waarop hulle so trots is, wegvat: enkelringe, kettinkies met sonnetjies en maantjies, oorbelletjies en armbande, sluiers en kopdoeke, voetkettinkies, versierde gordels, parfuum en gelukbringertjies, ringe en neusringe, deftige partytjierokke, mantels en serpe, handsakkies en spieëltjies, fyn sakdoekies, kopdoekies en skouermanteltjies. In plaas van die geur van parfuum sal hulle vreeslik stink. In die plek van hulle versierde gordels sal hulle toue om hulle middel dra. Hulle sal kaalkop rondloop in plaas van hulle goed versorgde hare. In plaas van deftige en fyn rokke sal hulle growwe klere van sak dra. In plaas van hulle skoonheid van vroeër sal hulle die brandmerk van slawe dra. Al Jerusalem se mans sal in die oorlog omkom; selfs hulle dapperste soldate sal nie ontsnap nie. Daar sal ’n groot gehuil en getreur by die stad se hekke wees. Die stad sal soos ’n misbruikte vrou lyk wat kaal op ’n hopie in die stof bly sit. In daardie tyd sal sewe vroue op een man afstorm en hom smeek: “Trou tog met ons sodat ons kan sê jy is ons man en jy ons van ons verskriklike vernedering kan verlos. Jy hoef nie oor kos en klere bekommerd te wees nie, ons sal self daarvoor sorg.” Maar daar kom ’n tyd waarin die Here elke boom en plant in Israel weer welig sal laat groei en sal laat vrugte dra. Dan sal die mense wat uit Israel oorgebly het, weer trots en opgewonde wees op die opbrengs van die land. Dan sal almal wie se name in God se boek opgeskryf is, dié wat die verwoesting van Jerusalem oorleef het, heilig genoem word. Die Here sal die inwoners van Jerusalem se morele vuilheid wegwas. Hy sal die bloed wat in Jerusalem vergiet is, verwyder deur sy Gees wat oordeel en verteer. Dan sal die Here die berg Sion en almal wat daar kom aanbid, beskerm. Bedags sal dit soos ’n wolk lyk en snags sal dit soos rook lyk met helder vlamme daarin. Hierdie magtige teenwoordigheid van die Here sal die hele stad beskerm soos ’n dak. Bedags sal dit skaduwee gee teen die son se hitte, en wanneer die storms en die reën kom, sal dit soos ’n skuilplek wees. Ek wil ’n lied sing oor die Een wat ek liefhet, ’n lied oor sy wingerd. Die Een wat ek liefhet, het ’n wingerd gehad op ’n baie vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe uitgehaal. Daarna het Hy van die beste wingerdstokke daarin geplant. In die middel van die wingerd het Hy ’n wagtoring gebou en toe ’n parskuip uit die rotse daar naby gekap. Hy het ’n goeie oes verwag, maar toe die oestyd kom, was elke druif aan daardie wingerd suur. Nou vra die Een wat ek liefhet: Inwoners van Jerusalem en Juda, Ek het my saak aan julle gestel, lewer tog nou uitspraak tussen My en my wingerd. Wat meer kon Ek vir my wingerd doen as wat Ek alreeds gedoen het? Waarom het my wingerd dan suur druiwe gedra in plaas van die goeie druiwe wat Ek verwag het? Laat Ek julle vertel wat Ek nou met my wingerd gaan doen: Ek gaan die heining wat daarom was om dit te beskerm wegvat en die muur wat Ek daarom gebou het, afbreek, sodat die diere kan inkom en dit kaal vreet en met hulle pote vertrap. Ek gaan hierdie wingerd aan homself oorlaat om toe te groei. Ek gaan dit nie meer snoei of skoffel nie. Doringbosse en onkruid sal dit inneem en Ek sal sorg dat dit nie daar reën nie. Israel is die Here die Almagtige se wingerd. Die mense van Juda is die wingerdstokke van wie Hy so baie verwag het. Hy het reg en geregtigheid verwag, maar onreg gekry. In plaas van eerlikheid moes Hy hoor hoe die verontregtes hulle lot by Hom bekla. Dit sal maar sleg gaan met die mense wat huis na huis opkoop sodat daar nie plek oorbly vir ander mense om in te bly nie. Julle palm al die plase in en bou vir julle huise daarop sodat julle die alleeneienaars van al die grond kan wees. Ek het die Here die Almagtige hoor waarsku: Baie van hierdie pragtige, groot huise sal leeg en vervalle bly staan omdat hulle eienaars dood en weg is. ’n Tien hektaar wingerd sal skaars 21 liter wyn oplewer en op ’n land waar daar ses sakke saad gesaai is, sal net een sak vol koring geoes word. Dit sal ellendig gaan met dié wat van vroeg tot laat sit en drink tot hulle dronk is. Daar is volop musiek en drank op hulle partytjies. Maar hulle steur hulle nie aan die Here nie. Hulle is so besig om te fuif dat hulle nie agterkom wat Hy besig is om te doen nie. Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Hulle belangrike leiers sal van die honger doodgaan en die gewone mense van die dors. Die doderyk staan oopmond vir Jerusalem en wag. Hy kan nie wag om die hele rumoerige spul, ryk en arm, met een sluk in te sluk nie. Op daardie dag sal die verwaandes tot ’n val kom en die hoogmoediges verneder word. Maar die Here die Almagtige sal sy grootheid bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys. Die lammers sal op die bouvalle en die boklammers in die strate van die stad wei asof dit ’n weiveld is. Daar wag groot swaarkry op die mense wat hulle sonde saam met hulle rondsleep soos ’n mens ’n hond aan ’n leiband sal lei. Hulle spot met die Here en sê: “Maak gou, doen iets! Wys ons wat Jy kan doen. Ons is nuuskierig om te sien wat die Heilige van Israel vir ons beplan.” Dit sal swaar gaan met dié wat sê verkeerd is reg en reg is verkeerd, wat van die donker lig wil maak en van die lig donker. As iets bitter is, sê hulle dit is soet en as dit soet is, noem hulle dit bitter. Dit sal swaar gaan met dié wat dink hulle is baie slim en kwansuis alles van alles af weet. Met die helde van die drankbottels wat spog oor hoe goed hulle hulle drank kan vat, sal dit baie swaar gaan. Ook met dié wat skuldige mense vryspreek omdat hulle geld het om hulle mee om te koop, maar onskuldige mense wat dit nie kan doen nie aan die pen laat ry. Omdat hulle alles wat die Here die Almagtige hulle geleer het, verwerp en hulle nie aan die Heilige van Israel se woorde gesteur het nie, sal hulle met wortel en tak uitgeroei word, soos droë gras en hooi wat deur die vuur tot as verbrand word. Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk en besluit om hulle te straf. Wanneer dit gebeur, sal die berge bewe en die lyke sal soos vuilgoed in die strate lê. Maar selfs dit sal nie die Here se woede laat bedaar nie en Hy sal aanhou om hulle te straf. Wanneer die Here vir die nasie wat ver bly ’n teken gee en vir hulle fluit om te kom, doen hulle dit sonder versuim. Nie een van hulle word moeg of struikel nie. Hulle kom sonder rus of slaap. Ten spyte daarvan gaan nie een van hulle se belt eers los of breek iemand se sandaal nie. Hulle pyle is vlymskerp en hulle boë is reeds gespan, reg om te skiet. Die vonke spat onder hulle perde se hoewe uit. Die wiele van hulle strydwaens draai soos ’n warrelwind. Hulle oorlogskrete klink soos jong leeus wat met ’n gebrul op hulle prooi afstorm. Hulle gryp die prooi en sleep hulle sonder teëstand weg, sonder dat iemand dit kan keer. Daardie dag sal die vyand se voeteval soos die dreuning van die see klink wanneer hulle op Israel afgestorm kom. As ’n mens oor die land uitkyk, sal daar net donker en ellende wees soos wanneer donker wolke die son se lig wegkeer. In die jaar toe koning Ussia dood is, het ek die Here in ’n visioen gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die soom van sy kleed het die tempel gevul. Om Hom was daar serafs. Elkeen het ses vlerke gehad. Hulle het twee van die vlerke gebruik om hulle oë toe te hou sodat hulle nie die Here kon sien nie. Hulle het twee ander vlerke gebruik om hulle naaktheid te bedek en met die ander twee het hulle gevlieg. Terwyl hulle so gevlieg het, het hulle oor en weer vir mekaar geroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek.” Hulle het so hard gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het, en die hele tempel het vol rook geword. Toe sê ek: “Dit is verby met my, want ek is skuldig! Ek doen gedurig sonde deur wat ek sê, en nie net ek nie, maar ook die volk by wie ek bly. En nou het ek met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!” Een van die wesens het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy raak toe met die kool aan my mond en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou skuld weggeneem en jou sonde vergewe.” Toe het ek die Here hoor vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” “Ek sal gaan,” het ek gesê, “U kan my stuur!” Toe sê die Here vir my: “Gaan sê vir hierdie volk: Julle sal my stem hoor, maar nie ’n woord verstaan van wat Ek sê nie. Julle sal sien wat Ek doen, maar nie besef wat dit beteken nie.” Verder het Hy vir my gesê: “Maak hierdie volk hardkoppig. Druk hulle oë en ore toe sodat hulle niks kan hoor of sien of verstaan nie, sodat hulle nie na My toe terugkom en vra dat Ek hulle moet gesond maak nie.” Ek vra toe: “Hoe lank sal dit aangaan, Here?” Sy antwoord was: “Totdat al die stede verwoes en verlate is en al die huise leeg staan en die hele land in ’n puinhoop omskep is. Totdat Ek al die mense ver weggevat het en die land heeltemal verlate is. Selfs al bly daar net ’n tiende van al die mense oor sal daardie deeltjie ook verwoes word. Maar soos daar gewoonlik ’n stomp bly staan as jy ’n akkerboom of ’n terpentynboom afgekap het, sal daar vir hulle ook ’n stomp agterbly. Hierdie stomp behoort aan die Here en daaruit sal die Here ’n nuwe geslag laat groei.” In die tyd toe koning Agas (hy was die seun van Jotam en die kleinseun van Ussia) koning van Juda was, het koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel (hy was Remalja se seun) Jerusalem aangeval. Die aanval het egter misluk. Toe koning Agas (’n koning uit die nageslag van Dawid) die boodskap kry dat die Siriërs ’n samewerkingsooreenkoms met die noordelike gebied van Israel aangegaan het, het hy en sy mense so bang geword dat hulle aan die bewe geraak het. Hulle het behoorlik soos bome gelyk wat deur die wind rondgewaai word. Die Here het toe vir Jesaja gesê: Jy en jou seun Sear-Jasub moet na koning Agas toe gaan. Hy is daar langs die pad waar die kleremakers werk, naby die onderpunt van die kanaal wat van die boonste dam af kom. Sê vir hom: Bly kalm! Moenie nou kop verloor en bang word nie! Die dreigemente van koning Resin en sy Siriërs en van koning Peka, Remalja se seun, beteken net so min soos twee stompe hout wat klaar uitgebrand het en nou net staan en rook. Natuurlik is hulle besig om ’n komplot teen jou te smee. Hulle beplan om Juda aan te val en te oorrompel sodat hulle die land vir hulleself kan vat en die seun van Tabeal as hulle eie koning oor Juda kan aanstel. Maar nou sê Ek, die Here jou God, vir jou: Dit sal nooit gebeur nie! Want Sirië is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie, en Damaskus het niks anders om op staat te maak as koning Resin nie. Wat Efraim betref, binne 65 jaar sal hulle so uitmekaargejaag wees dat hulle nie eers meer ’n volk genoem sal word nie. Want Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie, en Samaria het niks anders om op staat te maak as koning Peka nie. En julle? As julle nie in geloof vasstaan nie, sal julle ook nie voortbestaan nie. Nie lank hierna nie het die Here weer vir Agas ’n boodskap gestuur: Jy kan vir My enige teken vra as bewys dat Ek my woord sal hou,” het die Here gesê. “Al is dit ook iets uit die doderyk of uit die hemel uit.” Maar Agas het geweier. “Ek sal nie vir ’n teken vra nie,” het hy gesê, “ek sal nooit die Here so tart nie.” Toe sê Jesaja: “Koning Agas, jy wat uit Dawid se nageslag kom, luister nou mooi: Is dit nie genoeg dat julle mense se geduld op die proef stel nie? Wil julle nou kyk hoe ver julle die Here se geduld ook kan beproef? In elk geval, die Here sal self vir jou ’n teken gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy oud genoeg is om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maar nog voordat hy daardie ouderdom bereik, sal die lande van die twee konings vir wie jy nou so bang is, reeds in puin lê. Nou, wat jou en jou volk en jou familie betref, die Here gaan julle laat swaarkry soos nog nooit tevore nie. Dit sal erger wees as toe die ryk in twee geskeur het, met Efraim aan die een kant en Juda aan die ander kant. Die Here gaan die koning van Assirië na julle toe stuur. “Maar dit is nie al nie. In daardie tyd sal die Here vir die leërs van Egipte en Assirië fluit om hulle nader te roep. Hulle sal op julle toesak soos ’n swerm vlieë en julle steek soos bye. Hulle sal in groot swerms op julle toesak. Nie een gebied sal hulle vryspring nie, nie die verlate valleie, die grotte of selfs die doringstruike nie, en nog minder die vrugbare weivelde. “In daardie tyd sal die Here ’n skeermes aan die oorkant van die Eufraatrivier gaan huur, die koning van Assirië. Hy en sy leër sal julle kaal skeer van kop tot tone. Al wat sal oorbly, is julle vernedering en skande. As die land so kaal gestroop is en iemand sou dalk nog ’n jong koei en twee skaapooie oorhê, sal hy genoeg dikmelk hê om te eet uit die oorvloed wat hulle sal gee. Die enigste kos wat die paar mense wat in die land oorgebly het, sal hê om te eet sal heuning en dikmelk wees. “In daardie tyd sal elke stuk grond wat voorheen vol geplant was met duisende wingerdstokke wat ’n fortuin werd was, oortrek wees met dorings en onkruid. ’n Mens sal daar tussen die doringbosse kan gaan jag, want dit is al wat daar sal bly groei. Bo-op die heuwels waar daar voorheen landerye was, sal die doringstruike en bosse so dig groei dat die mense te bang sal wees om daar in te gaan. Net die skape en beeste sal daar wei.” Die Here het vir my gesê: Vat ’n stuk skryfpapier en skryf hierdie naam duidelik met ink daarop: Plunder-en-Roof-is-Naby. Ek het twee betroubare getuies, Uria die priester en Sagaria die seun van Jeberekja, gekry om te bevestig dat Ek hierdie naam reeds neergeskryf het, nog voordat die kind verwek is. ’n Ruk later het my vrou swanger geword. Die kind wat gebore is, was ’n seun. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: “Plunder-en-Roof-is-Naby,” want nog voordat hierdie kind pappa of mamma sal kan sê, sal die koning van Assirië beide Damaskus en Samaria inneem en al hulle skatte as buit vir homself vat. Die Here het weer met my gepraat en gesê: Omdat hierdie volk die rustige stroompie van die Siloagkanaal verag het en bang geword het vir Resin en Peka, sal Ek die koning van Assirië met sy volle mag op hulle laat neerkom. Hulle sal lyk soos die Eufraatrivier in volle vloed wat besig is om sy walle te oorstroom. Die vloed sal skouerhoog deur Juda spoel. O Immanuel, hy sal soos ’n reuseroofvoël wees wat sy vlerke oor jou hele land uitsprei. Luister hier, julle vreemde lande en ver plekke van die aarde, julle kan maar julle oorlogskrete uitskree, ons skrik nie, dit is julle wat gaan weghardloop van vrees. Maak gerus reg vir oorlog, maar terselfdertyd ook vir die paniek wat julle gaan oorweldig. Julle kan soveel planne maak as wat julle wil, dit sal nooit werk nie. Daar sal niks van al julle samewerkingsooreenkomste kom nie, want God is by ons. Die Here het my baie ernstig gewaarsku om nie hierdie volk se voorbeeld te volg nie. Hy het gesê: Moenie alles wat hierdie volk ’n sameswering noem net so aanvaar nie. En moenie skrik en bang wees vir alles waarvoor hulle bang is nie. Onthou, die Here is die Almagtige. As daar Een is vir wie julle bang moet wees, is dit vir Hom; daarom moet julle Hom eer. Hy beplan julle ondergang. In plaas daarvan dat Hy vir julle soos ’n oorhangende rots is waaronder ’n mens kan skuil, is Hy vir die twee koninkryke van Israel soos ’n struikelblok. Vir die inwoners van Jerusalem is Hy ’n strik waarin hulle gevang word. Baie van hulle sal struikel en val om nooit weer op te staan nie, baie sal in die strik gevang word. Ek sal al hierdie dinge wat die Here vir my gesê het, neerskryf. My opvolgers sal dit bewaar en aan die volgende geslag oorlewer. Ek vertrou op die Here. Al praat Hy nie nou met Israel nie, wag ek geduldig om te sien wat Hy gaan doen. Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het met hulle name wat sy planne uitspel. Ons is lewende getuies in Israel van die Here die Almagtige wat op die berg Sion woon. Waarom probeer julle dan dinge oor die toekoms by mediums en spiritiste uitvind? Moenie na hulle gemompel en binnensmondse gebrom luister nie. Moenie dat mense julle vertel dat die lewendes by die dooies moet gaan raad vra nie. ’n Volk moet tog hulle God vir raad vra. Hou vas aan die dinge wat die Here vir julle geleer en gewys het. As mense ’n ander rigting as hierdie inslaan, is hulle toekoms duister. Hulle sal verward en uitgehonger in die land rondtrek. Die honger sal so erg word dat hulle hulle koning en hulle God sal uitskel. Hulle sal hulp soek in die hemel en op die aarde, maar daar sal nie vir hulle hulp wees nie, net benoudheid en pikdonker ellende. Nogtans sal hierdie ellendige donker tyd nie vir altyd aanhou nie. Die gebiede van Sebulon en Naftali sal binnekort verneder word, maar in die toekoms sal die pad na die See van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel word. Die volk wat in verdrukking en donkerte moes leef, sien nou ’n helder lig. Waar daar ’n donker wolk oor hulle land gehang het, het die lig nou vir hulle deurgebreek. Israel sal weer groot wees en sy mense sal lag en jubel soos in die oestyd. Hulle skree uitbundig van vreugde soos die soldate wanneer hulle die oorlogsbuit verdeel. Want God sal die kettings waarmee sy volk vasgebind word en die swepe waarmee hulle geslaan word, stukkend breek, net soos Hy Midian se mag lank terug gebreek het. Die skoene van die soldate wat die land binnegeval het en hulle bloedbevlekte uniforms sal met vuur verbrand word. Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. Sy koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring. Hy sal vir altyd op Dawid se troon sit en sy koninkryk met regverdigheid en billikheid regeer. Daarvoor sal die absolute goedheid van die Here die Almagtige sorg. Die Here het vir Israel ’n waarskuwingsboodskap gestuur. Die dinge waaroor Hy hulle gewaarsku het, gaan hierdie nageslag van Jakob beslis tref. En die verwaande mense van Efraim en Samaria sal dit binnekort ontdek. Hulle wat so selfversekerd sê: “Die baksteengeboue het nou wel omgeval, maar ons sal dit met klipgeboue vervang. En ons sal sederbome plant in die plek van die wildevyebome wat afgekap is.” Die Here se reaksie hierop is om hulle vyande aan te hits om hulle aan te val. Die Siriërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste storm op Israel af soos roofdiere om hulle op te vreet. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf. Ten spyte van die straf het die volk hulle nie bekeer en na die Here toe teruggedraai nie. Hulle het ook nie gevra wat Hy van hulle verwag nie. Daarom sal die Here Israel op een dag heeltemal vernietig. Hy gaan die kop en die stert, die palmtak en die riete saam afsny. Die kop is die leiers en hulle vriende, terwyl die profete wat so lieg die stert is. Dié wat vir die volk leiding moes gee, het hulle heeltemal mislei; daarom is die mense heeltemal verward en verdwaas. Daarom is die Here nie eens meer opgewonde oor die jongmense nie, en kry Hy ook nie meer die weduwees en die weeskinders jammer nie. Hulle is almal ewe korrup en goddeloos, en die een vertel meer leuens as die ander. Maar die Here se woede het nog nie bedaar nie. Hy is van plan om hulle nog te straf. Hulle goddeloosheid vernietig die land soos ’n veldbrand. Alles word voor die voet deur so ’n brand verteer, nie net die dorings en bossies nie, maar ook die bos. Al wat oorbly, is die rook wat in die lug bly hang. Die woede van die Here die Almagtige versprei soos ’n veldbrand deur die land. Die volk het sy vuurmaakhout geword, elkeen net oor homself bekommerd. Hulle steel kos net waar hulle kan, maar dit is nie genoeg om hulle honger te stil nie. Selfs hulle buurman loop deur onder hulle geplunder. Die broers, Manasse en Efraim, veg teen mekaar. Op hulle beurt val hulle weer vir Juda aan. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf. Die ongeluk gaan julle tref, julle wat al hierdie onregverdige wette en nuwe regulasies maak om my mense te laat swaarkry. Julle ontsê die armes en die weduwees en die weeskinders hulle regte en steel op hierdie oneerlike manier hulle laaste besittings. Wat gaan julle doen die dag wanneer die Here ’n volk van ver af stuur om julle te kom straf? Na wie toe sal julle dan hardloop om julle te help, en waar gaan julle al julle rykdom wegsteek? Een van twee dinge gaan met julle gebeur: julle sal óf tussen die krygsgevangenes voortstrompel óf tussen die lyke op die grond bly lê. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf. Alhoewel Ek Assirië se militêre mag gebruik soos ’n stok waarmee Ek die volke kan slaan, wag daar vir hulle ook swaarkry omdat hulle die mag wat Ek hulle gegee het, misbruik het. Ek het Assirië na my goddelose volk toe gestuur omdat Ek vir hulle kwaad was, met die opdrag om hulle te beroof en die mense soos modder in die strate te vertrap. Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei. Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het. Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie. Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria. Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!” Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself. Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap. Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.” Die Here vra egter: Kan ’n byl hom ooit verbeel dat hy belangriker is as die een wat met hom kap? Of kan ’n saag dink hy kan iets afsaag sonder die mens wat hom gebruik? Dis tog nie die lat wat die persoon wat dit opgetel het, rondswaai nie? Kan ’n kierie dalk op sy eie opstaan en loop? Daarom gaan die Here die Almagtige die verwaande mense van Assirië laat krepeer van ellende en al die koning se skatte wat hy bymekaargemaak het, vernietig met ’n onblusbare vuur. God, die Lig van Israel, sal die vuur wees, die heilige God van Israel is die vlam wat hulle onbelangrike mense, die dorings en die onkruid, in ’n oogwink tot as verbrand. Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou. ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom. Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon. En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie. Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was. Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig. Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het. Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat. Kyk, hier kom die Assiriese leër aan! Hulle oorval Aja en Migron en bêre hulle voorrade in Mikmas. Hulle trek oor die bergpas en slaap die nag in Geba. Daar is paniek in Rama, en in Saul se stad, Gibea, slaan die mense op die vlug. Skree van vrees, inwoners van Gallim! Lajesa se inwoners hoor dit en weet wat kom. Die arme Anatot is volgende. Die mense van Madema is aan die vlug en dié van Gebim soek wegkruipplek. Die Assiriërs sal vandag nog in Nob kamp opslaan en van daar af bal hulle dreigend die vuis vir Sion, die berg waarop Jerusalem gebou is. Maar dit is die Here, die almagtige God, wat Jerusalem sal laat omval soos ’n boom waarvan die takke met kragtige houe afgekap word. Hy sal die hoë bome afkap en hulle in die stof laat lê. Die Here sal hulle uitkap soos mens ’n hele bos met ’n byl uitkap, selfs die Libanon se mooiste bome sal voor Hom val. Ten spyte daarvan dat die nageslag van Dawid getref word soos ’n boom wat afgekap word, sal daar tog weer uit die stomp van Isai wat oorbly, ’n takkie begin groei. Uit die ou wortel wat nog in die grond was, sal ’n nuwe tak uitkom wat sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal in hom wees en sal hom help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem. Die Gees sal hom toerus om ’n vaardige koning te wees wat weet wat hy wil doen. Hy sal onder leiding van die Gees in ’n intieme verhouding met die Here leef en Hom met eerbied dien. Dit sal vir hom ’n vreugde wees om die Here te dien. Hy sal nie mense op hulle baadjie takseer of toelaat dat skinderpraatjies hom mislei as hy ’n besluit moet neem nie. Hy sal die armes se hofsake regverdig behartig en die behoeftiges se regte beskerm. Maar teen die goddeloses sal hy genadeloos optree en hulle uitroei. Hy sal sy mense regverdig behandel en met integriteit optree. In daardie tyd sal ’n wolf en ’n lammetjie saam bly; die luiperd sal tussen die boklammers lê en slaap. Kalwers en vetgevoerde beeste sal loop en wei terwyl die leeus tussen hulle rondloop, en klein kindertjies sal hulle oppas. Koeie en bere sal saam wei terwyl hulle kleintjies by mekaar lê. In dié tyd sal leeus net soos beeste van gras leef. Babas sal by die gate van giftige slange kan speel en al sou ’n klein kindjie uit nuuskierigheid sy hand in die gat steek waarin daar ’n giftige slang is, sal hy niks oorkom nie. In God se nuwe wêreld sal daar nie meer misdaad en korrupsie wees nie, want net so vol as wat die see met water is, so vol sal die aarde wees met kennis van die Here se wil. In daardie tyd sal die nuwe koning uit die geslag van Dawid ’n teken wees vir al die nasies. Hy sal aansien onder die nasies hê en hulle sal met respek van hom praat. In dié tyd sal die Here weer sy mag gebruik om die mense wat van sy volk oorgebly het, terug te bring uit die lande waar hulle was: Assirië, Egipte, Patmos, Soedan, Elam, Babilonië, Hamat en van die kusstreke af en die eilande in die Middellandse See. Die Here sal vir die volke ’n teken gee om vir hulle te wys dat Hy die mense uit Israel en Juda wat oor die aarde verstrooi is, bymekaarmaak van die verste hoeke van die aarde af. Die noordelike stamme van Efraim se jaloesie teenoor Juda sal iets van die verlede wees. Hulle sal saamspan en die Filistyne in die weste aanval en daarna die volke wat in die ooste woon se gebiede ook plunder. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete verslaan en die Ammoniete hulle onderdane maak. Die Here sal die Nyldelta heeltemal laat opdroog en ’n droë, warm wind oor die Eufraatrivier laat waai om dit op te droog totdat daar net sewe waterstroompies oorbly waardeur enigeen sonder moeite sal kan stap. Hy sal vir die mense uit sy volk wat in Assirië oorgebly het, op hierdie manier ’n wye pad maak om mee terug te kom, net soos Hy vroeër met Israel gemaak het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het. Op daardie dag sal julle die volgende lied sing: “Loof die Here! U was kwaad vir ons, maar daardie tyd is verby, nou troos en ondersteun U ons! Kyk, God het ons kom red. Ons stel ons vertroue in Hom, ons is nie meer bang vir Hom nie. Die Here ons God maak ons sterk en beskerm ons. Hy is ons verlosser.” Soos ’n fontein met vars, helder water ’n dors mens laat jubel van vreugde, so sal julle jubel oor die verlossing wat kom. Dan sal julle sing: “Loof die Here en eer sy Naam. Vertel vir die volke van alles wat Hy gedoen het. Vertel vir hulle hoe wonderlik Hy is. Sing tot eer van die Here, want Hy het verstommende dinge gedoen. Gaan vertel dit vir die hele wêreld. Almal wat in Jerusalem bly, moet jubel en juig! Israel se God is heilig en ontsagwekkend, Hy woon onder julle!” Jesaja, Amos se seun, het die volgende visioen oor Babel se straf gesien: Hys die vlag wat die teken is dat die aanval moet begin op ’n oop heuwel. Roep die soldate bymekaar en moedig hulle aan om die hoogmoedige stad Babel aan te val. Ek, die Here, is in beheer van hierdie soldate. Ek het hierdie dapper vegters laat kom om my oordeel te voltrek. Hulle het net een doel voor oë en dit is om vir my eer te veg. Luister na die gedreun op die berge, dit is ’n geweldige groot leër wat aankom. Hierdie leër bestaan uit baie nasies en koninkryke wat hulle magte saamspan. Hulle is op pad omdat die Here die Almagtige besig is om ’n leër bymekaar te maak vir oorlog. Hulle kom van ver af, van die verste uithoeke van die wêreld af. Deur hulle gaan die Here hierdie land verwoes. Begin solank huil, want die dag van die Here se oordeel is baie naby en dit is ’n dag van verwoesting. Almal sal lam word van die skrik en vreesbevange bly staan. Angs sal hulle oorval soos ’n vrou wat skielik deur kraampyne oorval word, en hulle sal mekaar verskrik aankyk, bleek van die vrees. Die dag van die Here is ’n werklikheid. Op dié dag sal sy woede en straf losbars en sal Hy daardie land en al sy sondige inwoners vernietig. Dan sal die sterre van die hemel en die sterrebeelde wat hulle vorm nie meer blink nie. Al sou die son opkom, sou dit nie meer skyn nie en die maan sal nie lig gee nie. Ek gaan die land straf oor sy sonde en die goddelose mense oor hulle misdade. Ek gaan die verwaandheid van die arrogante mense uitwis. Ek sal hulle bespotlik maak. Daar sal maar min mense oorbly nadat Ek met hulle klaar is. Hulle sal baie skaarser wees as die suiwer goud uit Ofir. Die hemel sal skud en die aarde sal uit sy plek geruk word die dag wanneer Ek, die Here die Almagtige, my woede laat losbars. Al die uitlanders wat in Babel bly, sal na hulle eie land toe padgee. Hulle sal terugvlug na hulle eie land en hulle eie mense toe, nes wildsbokke wat gejag word of skape sonder ’n herder. Want as iemand gevang word, sal hy op die plek doodgemaak word. Hulle sal hulpeloos moet staan en toekyk hoe hulle babatjies voor hulle oë doodgemaak word, hulle huise geplunder word en hulle vroue verkrag word. Kyk, Ek gaan die Mediërs opsweep om Babel aan te val, want hulle kan nie met geld omgekoop word nie. Hulle soldate sal die jongmense met hulle pyle afmaai. Daar sal nie genade wees vir die babatjies of die klein kindertjies nie, hulle sal hulle voor die voet doodmaak. God sal die asemrowende stad Babel, die trots van die Babiloniese volk, in ’n ashoop omskep, net soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. Geslagte sal kom en gaan, maar niemand sal ooit weer daar bly nie. Nie eens die mense wat rondtrek op soek na beter weiding sal hulle tente daar wil opslaan sodat hulle diere daar kan wei nie. Dit sal ’n plek word waar die wilde woestyndiere gaan aas en die uile hulle nes in die murasies maak. Volstruise sal tussen die murasies rondloop en die wilde bokke sal oor die hope klippe spring op soek na iets om te eet. Die hiënas se gelag sal in die afgebreekte torings van die paleise weerklink en die jakkalse se gehuil in die murasies van die huise. Babilon se dae is getel, sy ondergang is nie meer ver nie. Maar die Here sal vir Israel jammer kry. Daarom sal Hy hulle weer sy volk maak en hulle terugbring na hulle eie land toe sodat hulle daar kan bly. Mense van ander volke sal by hulle kom aansluit en op dié manier deel word van Jakob se nageslag. Die nasies van die wêreld sal die Here se volk help om na hulle eie land toe terug te keer. Dié wat saam met hulle daarheen teruggaan om daar te gaan woon, sal vir hulle werk. Dié wat Israel gevange geneem het, sal nou deur Israel gevange geneem word en hulle sal regeer oor die mense wat hulle verdruk het. Wanneer die Here julle van al die lyding, ellende en harde dwangarbeid verlos, sal julle hierdie spotlied oor die koning van Babel sing: En toe, verdrukker, nou is dit verby met jou! Jou dae as tiran is getel. Die Here het jou bose mag gebreek en ’n einde gemaak aan die mag van die wreedaards wat jy aangestel het. Hulle het die volke wat hulle oorgeneem het, sonder ophou vervolg en hulle genadeloos laat swaarkry. Hulle het geen perke geken nie. Maar daardie tyd is verby. Daar is weer rus en vrede in die wêreld; die mense sing selfs weer. Selfs die sipresbome en die seders van die Libanon sing van blydskap oor wat met jou gebeur het. “Vandat jy verslaan is, kom niemand ons meer afkap nie!” sing hulle. Die doderyk is in rep en roer soos hulle regmaak vir jou koms. Dié wat daar is, kan skaars hulle opgewondenheid bedwing. Die wêreldleiers wat alreeds daar in die donkerte van die dood is, spring van opgewondenheid op om jou te verwelkom. In ’n koor klink dit: “En toe, nou is jy net so ’n swakkeling soos enigeen van ons! Ja-nee, jy is een van ons! Jy was gewoond aan pragtige musiek en eerbetoon waar jy vandaan kom. Welkom in die doderyk, hier is jou bed van goggas gemaak en daar is vir jou ’n kombers van wurms!” Koning van Babel, jy wat gedink het jy is soos die môrester wat hoër sit as al die ander sterre, kyk nou net hoe het jy uit die hemel geval! Kyk hoe hulpeloos lê jy hier op die grond, en dit nogal jy, die een wat soveel ander nasies op hulle knieë gedwing en platgeloop het. In jou gedagtes het jy mos vir jouself gesê: “Ek gaan uitstyg bokant God se hoogste sterre. Ek gaan my troon in die hoogste hoogtes maak. Daar ver in die noorde op die hoë berge waar die gode mekaar ontmoet, dit is waar ek gaan bly en soos ’n koning op my troon sit en die wêreld bekyk. Ek gaan bokant die wolke uitklim en soos die allerhoogste God self word!” Maar kyk wat het nou met jou gebeur. Hier is jy in die bodemlose put van die doderyk. Almal wat jou daar sien, sal jou oopmond aangaap en wonder: “Is dit die man wat die hele wêreld geskud het en hulle konings aan die bewe gehad het? Kan dit dieselfde man wees wat die wêreld in ’n verlate, kaal vlakte verander het en stede as puinhope agtergelaat het, wat so genadeloos was, wat nooit sy gevangenes laat teruggaan het huis toe nie?” Al die ander konings van die aarde lê begrawe in hulle koninklike grafte vol prag en praal, maar kyk na jou, jy het nie ’n behoorlike graf nie. Hier lê jy weggegooi soos ’n vrot tak wat niks beteken nie. Jy is sommer saam met die gewone mense wat in die oorlog dood is in ’n groot, gesamentlike graf gegooi. Hulle loop sonder eerbied oor jou lyk terwyl hulle die gat met klippe toegooi. Jy sal nie soos ’n koning begrawe word nie, want jy het jou volk vernietig en jou eie mense laat doodmaak. So ’n skurk sal nooit onthou word nie. Begin die slagting! Die seuns van hierdie koning mag nie toegelaat word om sy werk voort te sit nie. Op grond van wat hy gedoen het, mag hulle nie die kans kry om te regeer of weer stede te bou nie. Ek self gaan Babel aanval, sê die Here, die Almagtige. Ek gaan die koning se nageslag en alles wat aan hom behoort het, uitroei. Daar sal net mooi niks oorbly van alles wat aan hom behoort het nie. Ek sal Babel in ’n moeras verander. Net die uile sal daar wil bly, want Ek gaan hierdie stad met ’n besem wegvee totdat daar niks oorbly nie, sê die Here die Almagtige. Die Here die Almagtige het die volgende eed afgelê: Al my planne sal uitgevoer word net soos Ek My dit voorgeneem het. Ek sal die Assiriërs hier in my land verpletter en hulle op my berge vertrap. So sal Ek my volk bevry van die Assiriërs se oorheersing en die swaarkry wat hulle moes verduur. Ek het my planne gereed om die nasies van die wêreld te straf en Ek staan gereed om dit uit te voer. Wie kan die Here die Almagtige se planne in die wiele ry? Daar is niks of niemand wat Hom kan keer wanneer Hy besluit het om te straf nie. Hierdie uitspraak kom uit die jaar toe koning Agas dood is: Julle klomp Filistyne moet nie te gou bly word omdat die koning wat julle laat swaarkry het, dood is nie. Sy stok waarmee hy julle geslaan het, mag dalk stukkend wees, maar sy seun wat hom opvolg, is nog erger as hy. Uit die slang word ’n giftige adder gebore, nee, nog erger, ’n vlieënde draak. Maar Ek, die Here, sal die armes en die behoeftiges van my volk soos ’n herder versorg en beskerm. Hulle sal genoeg hê om te eet en ’n veilige plek om in te bly. Dieselfde geld ongelukkig nie vir julle nie. Ek sal julle nageslag van honger laat doodgaan sodat daar niemand oorbly nie. Huil en roep om hulp, Filistynse stede. Krimp inmekaar van vrees, julle klomp Filistyne. Daar kom ’n magtige leër uit die noorde aan soos ’n rookwolk wat saam met ’n verterende vuur gaan. Hierdie leër is vasberade en dapper, nie een van hulle sal omdraai nie. Wat sal ons vir die boodskappers van die Filistyne sê as hulle by ons aankom? Sê vir hulle: “Die Here self het Jerusalem gebou en sy mishandelde volk sal veilig wees daar.” Hier is ’n aankondiging van die Here oor Moab se straf: Julle twee stede Ar en Kir sal in een nag verwoes word en daar sal ’n doodse stilte oor Moab hang. Die inwoners van Dibon gaan na hulle heiligdomme toe om oor die lot van Nebo en Medeba te treur, hulle huil oor Moab. Almal het hulle hare en baarde afgeskeer as ’n teken van rou. Hulle loop in die strate rond met hulle growwe rouklere. Hulle sit op die plat dakke van hulle huise en huil kliphard, hulle loop op die pleine van hulle stede rond en treur. Die hartseer krete van Gesbon en Elale kan tot in Jahas gehoor word. Selfs Moab se soldate sal bang word en skreeu van vrees, want hulle moed het hulle begeef. Ek is verskriklik ontsteld oor Moab. Sy mense is op vlug na Soar en Eglat-Selisija. Hulle loop huil-huil teen die bergpas uit op pad na Lugit toe. Dié wat op pad is Goronajim toe, loop hardop en huil oor die ramp wat hulle getref het. Die stroom van Nimrim wat altyd oorloop van die water, is nou so droog soos ’n woestyn. Al die gras en plante het verdroog, daar is nie meer sprake van weiding nie. Die desperate vlugtelinge probeer om met soveel besittings as wat hulle kan oor die Wilgerspruit te kom. Hulle gehuil kan deur die hele Moab gehoor word, van Eglaim in die suide tot by Beër-Elim in die noorde. By Dibon is die rivier se water al rooi van die bloed, maar Ek gaan nog erger rampe oor die stad bring, sê die Here. Ek gaan leeus onder die oorlewendes uit Moab instuur. Daar sal niemand in die land oorbly nie. Die vlugtelinge by Sela in die woestyn stuur lammers Jerusalem toe as ’n teken van onderdanigheid aan die koning van Juda. Hulle fladder heen en weer by die driwwe van Arnon rond soos ’n klomp verskrikte voëls wat uit hulle neste verdryf is. Hulle pleit by die inwoners van Juda: “Gee vir ons raad! Doen tog iets om ons te help. Beskerm ons en gee vir ons skuilplek waar ons nie gesien kan word nie, want ons vyande is warm op ons spoor. Ons is vlugtelinge, moet ons nie aan ons vyande uitlewer nie. Laat die vlugtelinge uit Moab tog by julle bly totdat die gevaar verby is. Beskerm ons teen ons vyande wat ons wil vernietig.” As die krisis verby is en die verwoesting ophou en die invalsmagte uit die land uit is, sal die Here, omdat Hy getrou bly aan sy beloftes, ’n goeie regeerder in Jerusalem aan bewind laat kom. Hierdie koning uit Dawid se nageslag sal betroubaar wees en hy sal hom beywer vir wat reg is. Ons het gehoor van Moab se hoogmoedigheid. Ongelukkig was al hierdie hovaardigheid en grootpratery niks anders as leë woorde nie. Daarom huil al die Moabiete oor wat met die land gebeur het. Hulle huil van verslaentheid as hulle besef dat die lekkernye van Kir-Geres iets van die verlede is. Die plase in die omgewing van Gesbon is verwoes en die wingerde by Sibma is verdroog. Hierdie wingerde se wyn het baie konings en heersers dronk gemaak. Hulle ranke het welig en ver gegroei, van Jaser in die noorde deur die woestyn tot by die Dooie See in die suide. Ek huil saam met Jaser se mense oor die wingerde van Sibma. Die trane loop oor my wange as Ek aan Gesbon en Elale dink, want daar is nie sprake van ’n oes waaroor die mense bly kan wees nie. Die vrolike stemme in die vrugteboorde is stil, niemand sing meer in die wingerde nie. Niemand trap meer wyn in die parskuipe nie, want die Here het ’n einde gemaak aan al die oesvreugde. Daar is niks om te oes nie. Ek treur oor Moab, my trane rol saam met die hartseer klanke van die harp. Ek rou oor Kir-Geres. Ten spyte van al die moeite wat die mense van Moab doen om vir hulle gode by hulle offerplekke op die heuwels te gaan offer en hulle om hulp en raad te smeek, help dit hulle niks. Die Here het al vantevore hierdie dinge van Moab gesê. Nou sê Hy dit weer: Oor drie jaar, en hierdie drie jaar sal net so noukeurig afgetel word soos ’n gehuurde werker die oorblywende dae van sy kontrak aftel, sal Moab se mag en hoogmoed beëindig word. Van sy geweldige bevolking sal net ’n hand vol oorbly en hulle sal in elk geval tot niks in staat wees nie. Die Here se boodskap om Damaskus se straf aan te kondig: Damaskus gaan ophou om ’n stad te wees; al wat van die stad gaan oorbly, is ’n puinhoop. Die dorpies van Aroër sal so verlate wees dat die kleinvee daar sal gaan lê en rus sonder dat iemand hulle verwilder. Israel sal magteloos wees en Damaskus sal sy onafhanklikheid verloor. Die klompie Siriërs wat oorbly, sal net so hulpeloos wees soos die noordelike stamme wat nou in Israel woon, sê die Here die Almagtige. Daardie dag sal Israel se mag tot niet gaan en sy rykdom sal in armoede verander. Israel sal so verlate en kaal gestroop wees soos ’n land in die Refaimvallei wat klaar geoes is en waarvan selfs die laaste koringare wat in die land agtergebly het, opgetel is. Daar sal net ’n paar mense in die land oorbly, net soos daar altyd ’n paar verlore olywe oorbly nadat ’n mens die rypes afgeslaan het. Dalk twee of drie aan die heel boonste toppe of vier of vyf aan ’n ander tak, sê die Here die God van Israel. Op daardie dag sal die mense weer hulp gaan soek by die Here wat hulle gemaak het, en respek hê vir die heilige God van Israel. Dan sal hulle nie meer op die altare en die afgode wat hulle self gemaak het, vertrou nie. Hulle sal nie meer die beelde van Asjera aanbid en wierook op hulle altare vir die gode brand nie. In daardie tyd sal Israel se versterkte stede verlate lê, toegegroei onder die bossies, net soos die stede van die Hewiete en die Amoriete toe hulle destyds uit vrees vir die Israeliete uit hulle stede gevlug het. Julle vra hoekom? Omdat jy, Israel, die rug gedraai het vir die Here wat jou nog altyd gehelp het. Julle het vergeet dat die Here altyd die rots was waar julle veilig kon wegkruip vir julle vyande. So, plant maar lote en lê die mooiste tuine aan vir julle afgode vir wie julle so lief is. Al sou die onmoontlike gebeur en hierdie plante dadelik begin groei en blom en die lote vrugte dra, sal julle dit nie oes nie. Die enigste oes wat op julle wag, is siekte en onhoudbare pyn. Luister, hoor die dreuning! Magtige nasies is aan die optrek, hulle opmars klink soos die gedruis van die see en die geluid van groot branders wat op die strand breek. Maar ten spyte van al die geraas laat die Here hulle in hulle spore omdraai en kan hulle nie vinnig genoeg weghardloop nie. Voor die Here se mag is hulle soos strooi wat deur die wind weggewaai word of stof wat deur ’n warrelwind opgewaai word. In die aand is hulle nog ’n bedreiging wat Israel paniekbevange laat wegkruip, maar teen dagbreek is daar niks of niemand van hulle oor nie. Dit is die beloning van dié wat die besittings van die volk van die Here plunder en vernietig. Daar wag swaarkry op die land wat aan die voet van die Nyl lê, die land vol insekplae. Hulle stuur ambassadeurs met die Nyl in hulle papirusbote. Maar hulle word teruggestuur met die boodskap: Gaan terug na julle eie land toe, die land wat deur riviere deurkruis word. Vat hierdie boodskap vir julle lang mense met die blink vel wat wyd en syd gevrees word omdat hulle so sterk is dat hulle enige volk kan platloop. Wanneer ek op die berg die teken vir die oorlog gee, moet die mense van die wêreld kennis neem. Luister as ek die trompet blaas wat die begin van die oorlog aankondig, want die Here het vir my gesê: Ek sal dinge eers rustig uit my blyplek dophou sonder om in te meng. Ongestoord soos die hittegolwe wat op ’n warm dag uit die grond uit opslaan, soos die mis wat in die somerhitte gedurende die nag in die boorde vorm as dit oestyd is en in die stilte van die môre oor die lande hang. Etiopië sal soos ’n wingerd wees waarvan die bloeityd verby is en die druiwe al begin ryp word. Maar voor hulle kan vrugte dra, word die wingerdlote met ’n snoeimes afgesny en die ranke afgebreek en weggegooi. Soos die afgebreekte takke sal die lyke van jou magtige leër net daar op die grond gelos word vir die roofvoëls uit die berge en die wilde diere om te vreet. In die somer sal die aasvoëls die vleis wegskeur en in die winter sal die wilde diere aan die bene lê en kou. Maar daar kom ’n tyd wanneer die Here die Almagtige geskenke sal ontvang van hierdie lang mense met die blink vel wat in die land bly wat deur die riviere deurkruis word en vir wie almal bang is. Hulle sal die geskenke vir Hom Jerusalem toe bring, op daardie plek waar Hy gesê het Hy aanbid moet word. Die Here se boodskap om Egipte se straf aan te kondig: Die Here kom op ’n vinnige wolk aangery in die rigting van Egipte. Egipte se afgode bewe en hulle mense is lam van vrees as hulle Hom sien kom. Ek gaan ’n burgeroorlog in Egipte laat uitbreek, sê die Here, die mense sal onder mekaar veg, broer teen broer, vriend teen vriend, een stad teen ’n ander en een koning teen ’n ander. Ek sal die Egiptenaars frustreer, want Ek gaan hulle planne in die wiele ry. Hulle sal raad gaan soek by hulle afgode en towenaars en waarsêers. Maar Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van ’n wrede koning, sê die Here die Almagtige. Die water van die Nyl sal minder word totdat dit uiteindelik totaal en al opdroog. Die water in die kanale sal stink soos die riete en die biesies begin opdroog en vrot. Die waterplante wat langs die Nyl by die mond van die Nyl groei, sal doodgaan van die droogte. Al die saailande langs die Nyl sal opdroog en die wind sal dit wat oorbly, wegwaai. Die vissers sal oor hulle lot kla. Niemand wat met hoeke of nette in die Nyl visgevang het, sal iets hê om van te lewe nie. Die wewers sal nie vlas of katoen hê om mee te weef of te vleg nie omdat die oeste misluk het. Almal wat met hierdie materiaal werk, sal stomgeslaan wees oor hulle lot. Die leiers van Soan is ’n klomp gekke en die koning van Egipte se raadgewers gee vir hom verspotte raad. Dis ondenkbaar dat hulle die farao probeer wysmaak dat hulle voorouers verstandige mense was. Waar is jou slim raadgewers dan nou, Farao? As hulle dan werklik so slim is, laat hulle vir jou kom vertel wat die Here die Almagtige se plan met Egipte is. Die sogenaamde leiers van Soan is almal lagwekkend kinderagtig. En dié van Memfis is almal onderduims. Egipte se leiers het hulle land op ’n dwaalspoor gelei. Die Here het hulle verwar. Daarom neem hulle onsinnige besluite. Hulle laat Egipte rondslinger soos ’n dronk mens wat in sy eie braaksel rondgly. Daar is niemand, nie ryk of arm, nie die vooraanstaande mense of dié sonder aansien, wat Egipte meer kan red nie. Daar kom ’n tyd dat die Egiptenaars so swak sal wees soos die swakstes. Hulle sal bewe van angs as hulle sien dat die Here besluit het om teen hulle op te tree en hulle te straf. As iemand net die naam Juda noem, sal hulle angsbevange aan die bewe gaan, want dit sal hulle herinner aan wat die Here die Almagtige se plan met hulle is. In daardie tyd sal daar so baie Israeliete in Egipte wees dat hulle in vyf Egiptiese stede Hebreeus sal praat en hulle sal die Here die Almagtige openlik dien. Een van daardie stede sal Die Stad Waar Reg Geskied genoem word. So sal daar in die hart van Egipte ’n altaar wees waarop daar vir die Here geoffer word. Op die grens sal daar ’n monument wees met sy Naam daarop as ’n herinneringsteken. Hierdie dinge sal die mense van Egipte aan die Here se teenwoordigheid herinner. As sy volk wat in Egipte is, vir die Here hulp vra omdat hulle verdruk word, sal die Here vir hulle iemand stuur om hulle vry te maak en te verlos van die Egiptenaars. Dan sal die Here Homself aan die Egiptenaars bekendmaak. Hulle sal Hom leer ken en Hom aanbid deur vir Hom diereoffers en graanoffers te bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak en dit nakom. Die Here sal die Egiptenaars straf, nie om hulle dood te maak nie, maar om hulle te laat besef wie Hy is. Dan sal hulle tot bekering kom en Hom dien. Hy sal hulle weer gesond maak en hulle gebede verhoor. In daardie tyd sal daar ’n grootpad tussen Egipte en Assirië wees sodat mense uit hierdie lande vrylik heen en weer kan beweeg. Hierdie twee volke sal saam die Here aanbid. Israel sal hulle bondgenoot word en saam sal die drie lande ’n seën vir die res van die wêreld wees. Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is julle, Egipte wat my volk is, geseënd is julle, Assirië wat Ek gemaak het, en geseënd is Israel wat my eiendom is. In die jaar toe koning Sargon van Assirië die Filistynse stad Asdod aangeval en ingeneem het, het die Here vir Jesaja die seun van Amos gesê: Trek al jou klere uit, tot jou sandale ook. Jesaja het dit gedoen en sonder klere en sandale rondgeloop. Toe Asdod ingeneem is, het die Here gesê: My dienaar Jesaja loop nou al die afgelope drie jaar sonder klere en sandale rond soos ’n gevangene. Dit is ’n teken van presies wat met Egipte en Etiopië gaan gebeur. Die koning van Assirië sal hierdie twee lande se mense gevange neem en hulle voor die voet, oud en jonk, kaal en sonder sandale aan hulle voete as ballinge wegvoer. Almal sal die kaal sitvlakke sien. Dit is die skande wat Egipte sal oorkom. Dié wat op Etiopië se hulp gereken het en grootgepraat het oor alles wat Egipte vir hulle sou doen, sal teleurgestel staan, sonder hoop. Dan sal die Filistyne wat langs die Middellandse See bly, sê: “As dit met Egipte kan gebeur, watter kans het ons teen die koning van Assirië? Dit is verby met ons!” Die Here se boodskap om Babel se straf aan te kondig: Soos warrelwinde wat oor die Negevwoestyn aangewaai kom, so kom daar invallers van die woestyn se kant af uit ’n land waarvoor almal bang is. Ek het ’n skrikwekkende visioen gesien, ’n visioen van verwoesting en verraad. Elam, julle moet aanval! Medië, julle moet die stede beleër! Die Here gaan ’n einde maak aan al die swaarkry wat Babel veroorsaak het. Die goed wat ek gesien het, is so angswekkend dat my hele liggaam inmekaartrek soos ’n vrou wat besig is om te kraam. My kop draai en my keel trek toe van vrees. My rustige slaap is iets van die verlede, ek lê in die nag wakker en bewe van angs. Kyk na Babel, hulle dek sowaar nog tafels om fees te vier en gooi matte op die vloer waarop die feesgangers kan sit. Offisiere, kry eerder julle wapens slaggereed vir die oorlog! Die Here het my die opdrag gegee om ’n wag uit te sit sodat hy kan rapporteer wat hy sien en hoor. As hy strydwaens en perderuiters met troppe donkies en kamele sien aankom, moet hy hulle fyn dophou. Toe het die wag uitgeroep: “Meneer, ek het dag en nag op my pos in die wagtoring gebly. Kyk, uiteindelik kom daar strydwaens en perderuiters aangery. Skielik skree iemand: Babel het geval, en al die afgode van Babel lê in stukkies op die grond!” O, my volk wat so stukkend getrap lê soos graan wat op die dorsvloer uitgetrap word, alles wat ek vir jou gesê het, is wat ek by die Here die Almagtige, die God van Israel, gehoor het. Die Here se boodskap om Edom se straf aan te kondig: Van Edom af roep iemand na die wag en vra: “Wag, wanneer breek die dag? Wanneer is die nag verby?” Die wag antwoord: “Die môre is amper hier, maar die nag kom weer. As jy weer ’n keer wil kom vra, kom vra gerus.” Die Here se boodskap om Arabië se straf aan te kondig: Julle handelaars van Dedan, gaan kruip weg in die woestyn van Arabië. Mense van Tema, gee vir die vlugtelinge kos en water. Want hulle het vir die geweld van die oorlog gevlug omdat hulle met swaarde en pyle en boë aangeval is. Maar dit het die Here vir my gesê: “Oor presies ’n jaar, en dit gaan nie ’n maklike jaar wees nie, sal Kedar sy magtige posisie verloor. Selfs van sy dapper soldate wat sulke goeie boogskutters is, sal daar min oorbly.” Ek het gepraat, sê die Here, die God van Israel. [1-2] Hierdie is ’n aankondiging wat genoem word: “Die Vallei van die Visioen.” Wat gaan aan? Wat doen julle almal op julle huise se dakke? Hoekom is die hele stad Jerusalem opgewonde en luidrugtig besig om fees te vier? Julle soldate lê dood in die strate, nie omdat hulle geveg het nie, maar omdat hulle dood is van die honger en van al die siektes in die stad. *** Julle leiers het soos een man gevlug en oorgegee sonder om weerstand te bied. Party het probeer vlug, maar hulle het nie ver gekom voordat hulle ook gevang is nie. Toe ek dit sien, het ek gesê: “Los my uit! Moenie my probeer troos nie. Los my dat ek kan huil oor my volk se ondergang!” Wat ’n dag van paniek en verwarring het die Here die Almagtige oor die Vallei van die Visioen gebring. Die mure van Jerusalem is afgebreek, die noodkrete van die mense eggo van die berge af. Die boogskutters van Elam kom aangestorm op perde en strydwaens. Die soldate van Kir het reeds hulle swaarde en skilde gereed vir die geveg. Juda se vrugbare vlaktes word oorstroom met strydwaens, die ruiters staan gereed voor Jerusalem se hekke. Van hulle verdedigingslinies het daar niks oorgebly nie. Toe het julle skielik na julle wapens gaan soek in die magasyn. Julle het gesien op hoeveel plekke die muur van die Dawidstad reeds deurgebreek is en besef dat julle die water in die onderste dam moet opgaar. Julle het al die huise in Jerusalem bekyk en dié wat bouvallig was se materiaal gebruik om die muur weer te probeer herstel. Julle het ’n opgaardam in die stad gebou om die water van die ou fontein in op te gaar. Maar julle het nie daaraan gedink om tussen alles deur die Here se hulp te vra nie. Hy is al een wat sou kon help, want Hy het alles lank tevore reeds beplan. Dit was die almagtige Here se manier om julle op te roep om te huil en te treur. Hy wou hê julle moet julle koppe kaal skeer as ’n teken van hartseer oor julle sonde en julle moet sakke aantrek om julle berou te wys. Maar julle, wat doen julle? Julle dans en speel en slag beeste en skape vir die fees. “Kom ons eet en drink en wees vrolik,” sê julle, “want môre is ons dood!” Die Here die Almagtige het persoonlik vir my gesê dat Hy hierdie sonde nooit sal vergewe so lank as wat julle leef nie. Dit het die Here die Almagtige gesê. Die Here, die Almagtige, het my die opdrag gegee om Sebna, die paleisbestuurder, met die volgende boodskap te konfronteer: Wie dink jy is jy? Wie het jou die reg gegee om vir jou ’n graf hier in die rotse te laat uitkap tussen die konings se grafte? Jy mag dink jy is belangrik, maar die Here gaan jou gryp en jou uitskud soos ’n mens klere uitskud om ’n luis daaruit te kry. Daarna sal die Here jou in ’n klein balletjie rol en jou ver weggooi tot in ’n droë, uitgestrekte land. Daar sal jy doodgaan en al jou pragtige koetse waarop jy so trots is, sal nutteloos en stukkend daar bly staan, want jy het jou koning in die skande gesteek. Die Here gaan jou uit jou amp ontslaan en jou van al jou aansien stroop. Nadat Ek dit gedoen het, sê die Here, sal Ek my dienaar Eljakim, die seun van Gilkija, roep en hom in jou plek aanstel. Hy sal jou ampsklere dra, jou titel kry en die gesag hê wat jy gehad het. Omdat hy hulle belange op die hart dra en hulle versorg, sal hy vir die inwoners van Jerusalem en Juda ’n vaderfiguur wees. Ek sal vir hom die belangrikste posisie in die paleis gee. Hy sal net onder die koning wees en daarom sal hy die sleutels van die paleis dra. Hy sal oop- en toesluit waar hy wil en niemand sal hom kan teëgaan nie. Hy sal so standvastig en onwrikbaar soos ’n tentpen wees wat behoorlik ingeslaan is, niks sal hom kan beweeg nie. Hy sal die trots van sy familie wees. Maar die las en die druk van sy familie sal net te veel word vir hom. Hy sal soos ’n haak wees waaraan daar te veel swaar goed hang. Die een of ander tyd moet dit ingee. Daarom, so sê die Here die Almagtige, kom daar ’n dag wanneer hierdie stewige pen net sal ingee, dit sal afbreek en val en alles wat daaraan gehang het, sal saam val en stukkend breek. Die Here het dit gesê. Die Here se boodskap om Tirus se straf aan te kondig: Huil, matrose van Tarsis wat van die ver lande af op pad is terug huis toe, want Tirus, julle veilige hawe, is verwoes. Die gerugte wat julle in Siprus gehoor het, is waar. Sidon se kusbewoners en handelaars is stomgeslaan van die skok. Hulle het verteenwoordigers in alle rigtings oor die see gestuur om handel te dryf. Hulle het graan uit Egipte uit ingevoer van die vrugbare Nylgebied af en dit dan weer aan die ander nasies teen ’n wins verkoop. Laat sak jou kop in skaamte, Sidon, jy wat ’n groot hawestad was. Nou is jy die een wat sê: “Ek het nooit kinders, seuns of dogters, in die wêreld gebring of grootgemaak nie.” Vir die Egiptenaars sal die nuus oor Tirus ’n geweldige skok wees. Vaar terug Tarsis toe en huil, julle wat langs die kus bly. Hoe kan hierdie grafstil puinhoop al wees wat oor is van die stad wat altyd feesgevier het? Is dit die stad met die roemrykste geskiedenis van al die nedersettings wat hulle oor die hele wêreld gevestig het? Wie het hierdie ramp oor Tirus gebring? Tirus het tog koninkryke opgebou, sy handelaars is soos prinse behandel, hulle was van die mees gerespekteerde mense in die wêreld. Dit is die Here die Almagtige wat dit gedoen het om hulle hoogmoed oor hulle prestasies te breek en om sy ongelukkigheid met hulle vername handelaars en hulle verwaandheid te wys. Vir die inwoners van Tarsis bly daar net een moontlikheid oor as hulle wil oorleef, en dit is om te begin om hulle lande te bewerk en self te boer, want die hawe is tot niet. Die Here het sy hand oor die see uitgesteek om die koninkryke van die aarde te skud. Hy het die opdrag gegee dat die handelstede van die Fenisiërs verwoes moet word. Hy sê: Jou dae van feesvier is vir altyd verby. Jy was op jou tyd ’n pragtige stad vol lewe, maar daardie tyd is verby. Jy was ’n magtige stad, maar nou kry jou mense swaar. Selfs al vlug hulle Siprus toe, sal hulle nie veilig wees nie. Dit is die Babiloniërs wat Tirus gaan vernietig en nie die Assiriërs nie. Hulle sal vestingwalle bou om oor die stad se mure te klim en al die paleise daarin afbreek sodat die stad soos ’n puinhoop sal lyk. Die enigste inwoners wat sal oorbly, is die woestyndiere wat tussen die puin sal loop en snuffel. Julle moet treur, matrose, want die stad waarop julle altyd staatgemaak het, is verwoes. Vir 70 jaar, die leeftyd van ’n koning, sal Tirus vergete lê. Na hierdie tyd sal dit met Tirus gaan soos die lied oor die prostituut sê: “Vat jou harp en stap deur die stad, jou arme vergete prostituut! Sing en speel mooi liedjies sodat die mans jou weer kan onthou.” Na die 70 jaar om is, sal die Here Tirus weer laat herleef. En die stad sal weer handel dryf soos voorheen en weer sakevennote oor die hele wêreld hê. Maar hierdie keer sal al die handelswinste vir die Here gegee word. Dit sal nie weer opgegaar en gebêre word nie. Uit hierdie winste sal kos en klere gekoop word vir die mense wat die Here dien en aanbid. Kyk, die Here gaan die aarde verwoes. Hy gaan die hele voorkoms van die aarde verander en sy inwoners verstrooi. Dieselfde lot gaan almal tref: die priesters en die volk, huisbediendes en hulle eienaars, lyfbediendes en hulle eienaresse, kopers en verkopers, mense wat geld uitleen en dié wat by hulle geld leen, bankiers en hulle debiteure. Die aarde sal geheel en al verwoes en leeggestroop word. Dit is wat die Here sê. Die aarde lê dor en droog as gevolg van die droogte. Die hemel en die aarde ly saam, want die aarde is deur sy inwoners verwoes. Hulle het God se woord verwerp, sy opdragte geïgnoreer en sy ooreenkoms verbreek wat vir altyd moes geld. Daarom tref ’n vloek nou die aarde en sy inwoners. Die mense dra die gevolge van hulle dade. Net ’n paar bly oor nadat ’n vuur alles verbrand het. Wyn sal skaars word omdat die wingerde verdroog het. Almal wat voorheen opgeruimd en vrolik was, treur nou. Die opgewekte musiek van harpe en tamboeryne het opgehou en die vrolike stemme van mense wat feesvier oor die oes, is doodstil. Niemand drink meer wyn en sing lekker saam nie. Vir dié wat nog drank drink, smaak dit galbitter. Die stad lê in puin en die huise het toegeval sodat niemand by hulle kan inkom nie. Mense loop in die strate en kerm vir wyn om te drink. Niemand is meer vrolik of opgeruimd nie, alle blydskap is weg. Die stad lê verlate en sy hekke lê in stukke gebreek. Dit is wat met elke nasie op die aarde sal gebeur. Dit sal lyk soos na die oes as al die olyfbome en wingerde kaal gestroop is van hulle vrugte en net die kaal takke oorbly. Maar dié wat gespaar gebly het, sal jubel en juig van blydskap. In die weste sal hulle die Here se grootheid besing. In die ooste vereer hulle Hom. Selfs die mense wat langs die kus bly, loof die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere om die regverdige God se mag te besing. Maar my gemoed is swaar. Ek is ontnugter, want oral is bedrog aan die orde van die dag en oneerlikheid kraai koning. Luister na my, daar wag angs en slaggate en strikke vir die mense van die aarde. Dié wat van die gevaar af probeer weghardloop, beland in ’n slaggat en dié wat uit die slaggate wegkom, word in ’n strik gevang. As die wolkbreuke en die aardbewings losbars, sal die aarde uitmekaarbars en oopskeur. Die aarde sal steier en struikel soos ’n dronk mens en heen en weer geslinger word in die wind soos ’n tent in ’n storm. Die wêreld se skuld is so swaar dat dit hom platdruk. As hy val, sal hy nie weer kan opstaan nie. Op dié dag sal die Here die magte bo in die hemel straf en op die aarde sal Hy die regeerders straf. Hulle sal bymekaargemaak word soos gevangenes wat tronk toe gaan. Daar sal hulle vir lank opgesluit word voordat hulle verhoor en gestraf word. Dan sal die Here die Almagtige sy troon op die berg Sion in Jerusalem bestyg en in mag en heerlikheid regeer. Al die leiers van die wêreld sal dit sien. Sy mag en heerlikheid sal so geweldig wees dat dit die son en die maan dof sal laat lyk. Here, U is my God! Ek wil U prys en u Naam grootmaak. U het asemrowende dinge gedoen; die dinge wat U lank gelede reeds beplan het, het U stiptelik en volgens u woord uitgevoer. U het die groot stede in murasies verander en hulle versterkte mure afgebreek. Die pragtige paleise van die vyand word platgevee en sal nooit herbou word nie. Daarom sal die mense van die sterkste nasies u almag erken en selfs die wreedste sal vir U ontsag hê. U beskerm die armes, die hulpeloses kom soek by U wegkruipplek. U het vir hulle skuiling gebied teen die mag van die storm en skaduwee gegee teen die hitte van die son. Die aanval van die wrede vyand is soos ’n ysige winterstorm wat genadeloos op alles neerkom, of soos die skroeiende hitte van die son in die woestyn. U het die oorlogskrete van die vyand laat ophou en die oorwinningsliedere van die wreedaards laat verdwyn, die hitte van die son laat verdwyn. Op die berg Sion gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal voorberei vir al die volke van die wêreld. Daar sal ’n oorvloed heerlike kos en die beste wyn wees. Hier op die berg sal die Here die wolk van onheil wat oor die volke gehang het, wegvat asook die doek wat hulle oor hulle gesigte gedra het as teken van hulle rou en hartseer. Hy sal die dood vir ewig vernietig en die trane afdroog. Die Here sal ’n einde maak aan die vernedering wat sy volk oor die wêreld moes verduur. Die Here het dit gesê. Wanneer dit gebeur, sal almal sê: Kyk, so tree ons God op! Ons het op Hom vertrou en Hy het ons verlos. Dit is die Here op wie ons vertrou het. Kom ons jubel en juig omdat Hy ons gered het. Die mag van die Here sal hier op die berg Sion bewys word wanneer Moab aan die voet van die berg vertrap word soos stoppels strooi deur die beeste in die mis ingetrap word. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om weg te kom. Hulle sal hulle hande uitsteek soos iemand wat besig is om te verdrink, maar ten spyte van hulle uitgestrekte hande sal die Here hulle verneder en hulle aan hulle lot oorlaat. Hy sal Moab se sterk mure gelyk met die grond afbreek. In daardie tyd sal hulle hierdie lied in Juda sing: Ons stad is sterk! God self beskerm ons mure. Maak die hekke wyd oop sodat die volk wat verlos is, kan inkom en dié wat getrou gebly het aan die Here, mag deurstap. U, Here, gee u vrede en voorspoed vir dié wat op U vertrou en volhard in die geloof. Vertrou altyd op die Here, want Hy sal ons beskerm. Hy het dié wat vol van hulleself is, verneder en hulle stad se mure met die grond gelyk gemaak. Die armes en die mense wat voorheen deur hulle verneder is, loop nou daaroor en vertrap dit tot stof. Vir ’n gelowige mens is die pad nie moeilik nie, want U maak dit vir hom gelyk. Here, ons sal U volg en ons hoop in U stel. Om U te loof en prys is ons diepste hartsverlange. Selfs in die nag verlang ek na U. Ek kan nie wag vir die môre om te kom nie. As die wêreld na U luister, leer hulle wat regverdigheid beteken. As ’n mens net goed is vir iemand wat kwaad doen, leer hy nooit wat reg of verkeerd is nie. Ten spyte van ander mense se eerlikheid bly hulle oneerlik, want hulle erken nie die gesag van die Here nie. U staan reg om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Verneder hulle, Here, laat hulle voel hoe dit voel as U met al u mag op hulle afkom; dan sal hulle agterkom hoe lief U vir u volk is. Ons is ryk, Here, maar alles wat ons bereik het, is as gevolg van wat U vir ons gedoen het. Here ons God, ons het al konings gehad wat oor ons regeer het, maar vir U, Here, aanbid ons. Hulle is dood en vergete, hulle tyd is vir altyd verby. U het hulle gestraf en hulle uitgeroei. Niemand kan hulle eens meer onthou nie. Ons loof U, Here, want U het ons ’n magtige nasie gemaak en ons grense na alle kante toe vergroot. Toe ons in die nood was, het ons na U toe gevlug, Here. Toe ons swaargekry het omdat U ons gestraf het oor ons sonde, het ons by U hulp gaan soek. Voor U het ons soos ’n swanger vrou wat op die punt is om geboorte te skenk, gekerm en gekrul van die pyn. Maar ten spyte van die geboortepyne het ons nie geboorte geskenk nie. Ons het niks vir ons land gedoen of iets noemenswaardigs bereik nie. Maar ons het darem hierdie troos: dié wat aan die Here behoort, sal opstaan en weer lewe. Die dooies sal opgewek word en van vreugde oor U jubel. Net soos die dou elke oggend nuwe lewe aan die aarde gee, so sal die Here dié wat lank reeds dood is, nuwe lewe gee. Gaan huis toe, my volk, en sluit julle deure toe. Kruip daar weg totdat die Here se woede teen julle vyande afgekoel het. Kyk, die Here kom uit die hemel uit om die mense van die aarde te straf oor hulle sonde. Dan sal niks meer geheim bly nie, elke moord wat gepleeg is, sal aan die lig kom, alles sal bekendgemaak word. Op daardie dag sal die Here sy gevaarlike, skerp swaard gebruik om die vyand te straf, die kronkelende waterslang wat in die diepsee woon, die seemonster. Dan sal Hy hierdie lied oor Israel sing: Sing van Israel, my pragtige wingerd! Ek, die Here, sorg self vir my wingerd. Ek lei dit gereeld nat sodat die lote nie verlep nie. Ek hou dag en nag daar wag sodat niemand dit kan beskadig nie. Ek is nie meer kwaad vir my wingerd nie. As my volk se vyande kom en soos dorings en onkruid probeer om my wingerd toe te groei, sal Ek hulle verbrand. Slegs as hulle met My vrede maak en by My beskerming soek, sal hulle gespaar word. In die toekoms sal Jakob se nageslag wortelskiet soos ’n boom. Israel sal bloeisels maak en vrugte dra wat vir die hele wêreld voordeel sal inhou. Het die Here Israel ooit so swaar gestraf soos Hy haar vyande gestraf het? Nee, want haar vyande het Hy uitgeroei, maar vir Israel het Hy die straf baie ligter gemaak. Hy het hulle vir ’n ruk in ballingskap laat gaan, byna asof hulle deur ’n wind na die ooste toe gewaai is. Deur hierdie lyding sal daar versoening kom vir Israel se sonde. Maar eers as Israel al hulle afgodsaltare afbreek en die klippe fynmaal tot stof en daar geen wierookaltare of vroulike afgodspale oorbly nie, sal al hulle sonde vergewe word. Die versterkte stede lê verlate en stil, die huise staan leeg en die strate is toegegroei met gras. Daar sal vee in strate wei en aan die takkies en grassies vreet en in die skaduwee van die struike lê en herkou. Die takke verdroog aan die bome en die vroue breek dit af vir vuurmaakhout. Israel verstaan niks; daarom het hulle nie teruggekeer na die Here toe nie. Dit is waarom God, wat hulle gemaak het, hulle nie meer jammer kry of Hom oor hulle ontferm nie. Maar daar kom ’n tyd waarop die Here die Israeliete weer bymekaar sal maak, van die Eufraat af tot by die stroom wat die grens met Egipte vorm. Hy sal hulle een vir een gaan haal soos wanneer ’n mens in die oestyd die koring en die kaf van mekaar skei en dan die koringkorrels sorgvuldig bymekaarmaak. Op daardie dag sal daar op ’n groot trompet geblaas word. Dan sal almal wat na Egipte toe verjaag is en almal wat in Assirië verlore geraak het, weer terugkom na hulle eie land toe. Dan sal hulle die Here die Almagtige weer op sy heilige berg in Jerusalem aanbid. ’n Groot krisis gaan Samaria tref, die trots van die dronk leiers van Efraim. Die stad wat hoog op die berg lê en afkyk op die vrugbare vallei se grootheid is aan die verdwyn, net soos die verlepte blomkrone op sy dronk leiers se koppe. Want die Here het iemand wat sterk en magtig is gereed om hulle aan te val. Hierdie vyand sal toeslaan met die geweld van ’n haelstorm en verwoestende stormwinde. Hy sal alles voor hom platvee soos ’n rivier wat in vol vloed afkom. Samaria, die trots van sy dronk leiers, sal deur die vyand tot stof vertrap word. Die pragtige stad wat so hoog op die berg sit en afkyk op die vrugbare vallei is klaar besig om te verdwyn. Dit sal met Samaria gaan soos met die vroeë vye wat voor die somer ryp word: as iemand so ’n vy sien, pluk hy dit dadelik en eet dit op sonder om eers daaroor te dink. Op daardie dag sal die Here die Almagtige die Een wees oor wie sy volk sal roem. Soos mense met verwondering na ’n pragtige kroon kyk wat ’n koning dra, so sal die mense wat van sy volk oorgebly het, na die Here kyk. Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee. Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie. Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies? Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.” Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer! God het vir sy volk rus en vrede in hierdie land belowe as hulle na Hom sou luister, maar hulle wou nie. Daarom spel die Here nou sy boodskap vir hulle uit in heel eenvoudige taal, letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël. Ten spyte hiervan sal hulle oor hierdie eenvoudige woorde struikel en val om nooit weer op te staan nie. Hulle sal gewond, gevang en met toue vasgebind word. Die Here het iets vir julle te sê, julle arrogante klomp leiers van Jerusalem. Julle loop en spog dat julle onsterflik is, dat julle ’n ooreenkoms met die dood het. Julle dink die vloedgolf van die aanvallers wat op julle afkom, kan niks aan julle doen nie omdat julle agter ’n muur van leuens en bedrog skuil, asof julle die dood kan uitoorlê. Die Here wat oor alles regeer, het vir julle ’n boodskap: Ek lê ’n fondament in Sion en sit ’n hoeksteen van graniet daarop neer wat sterk en veilig is om op te bou. Iemand wat op die Here vertrou, hoef nie paniekerig te word en te vlug nie. Ek gaan die meetstok van reg en die waterpas van geregtigheid gebruik om julle bouwerk te toets. Julle dink julle mure is stewig, maar omdat dit op leuens gebou is, sal dit verkrummel soos wanneer ’n haelstorm deur ’n gebied trek en verwoesting saai. Omdat dit op bedrog rus, sal die vyand kom en soos ’n vloedgolf daaroor spoel. Dan sal daar van julle sogenaamde ooreenkoms met die dood en julle onsterflikheid net mooi niks oorbly nie. As die aanvallers op julle afstorm, sal hulle julle met die grond gelykmaak. Weer en weer sal hulle aanval, sonder ophou, dag na dag, enige tyd van die dag of nag. Iemand wat hierdie boodskap verstaan, sal angsbevange raak. Al julle planne sal niks help nie. Dit is soos die spreekwoord wat sê dit help nie om jou te probeer uitstrek op ’n bed wat te kort is of om jou behoorlik te probeer toemaak met ’n kombers wat te klein is nie. Net soos die Here by die berg Perasim die Filistyne in sy woede platgeloop het en by Gibeon die Ammoriete verslaan het, so kom die Here nou met sy volk afreken. So vreemd as wat dit klink, die Here sal doen wat Hy moet doen. Staak julle ligsinnigheid, anders gaan julle straf nog erger wees as wat ek gesê het. Die Here, die Almagtige, het reguit vir my gesê dat Hy vasbeslote is om die hele land te vernietig. Ek pleit by julle, luister na my! As ’n boer wil saai, hou hy mos nie net aan om te ploeg en die grond voor te berei nie. As hy die grond klaar voorberei en gelykgemaak het, begin hy mos om die verskillende soorte saad te saai. Die kruie saai hy in klein beddinkies. Op die groot lande saai hy die koring en die gars, en op die kleiner lande saai hy ander gewasse soos lusern. Hy doen dit so omdat sy God hom geleer het om dit te doen. Hy sal tog nooit ’n swaar dorsmasjien gebruik om die fyn saadjies van die kruie in die hande te probeer kry nie. Hy gebruik ’n ligte stok om die saadjies mee uit te tik. As hy die broodkoring dors, gebruik hy wel ’n wa en perde, maar hy doen dit baie versigtig, want hy wil nie alles fyn trap nie. Al hierdie kennis kom van die Here die Almagtige af. Hy gee die beste raad en Hy sorg dat dinge reg verloop. Jerusalem, jy sal nog swaarkry, sê die Here, al staan die heilige altaar in jou en al is jy die stad van Dawid. Al hou julle jaar na jaar julle feeste op die regte tye, sal Ek Jerusalem in ’n hoek dryf. Daar sal baie swaarkry en hartseer in hierdie stad wees. Die hele stad sal soos ’n offeraltaar met bloed bedek wees. Ek sal jou van alle kante af aanval en jou mense van die buitewêreld afsny. Jerusalem sal soos ’n lyk wees wie se gees onder uit die graf uit probeer praat, ’n spookstem wat uit die grond uit mompel. Maar al hierdie wrede vyande wat in hulle hordes op jou toegesak het, sal soos fyn stof in die wind weggewaai word, want die Here die Almagtige sal skielik tot jou redding kom met ’n donderstorm en ’n aardbewing wat met ’n geweldige gedreun gepaardgaan. Daar sal storms en orkane wees, en ’n vuur wat alles voor die voet vernietig. Dan sal al die nasies wat teen Jerusalem geveg en hulle laat ly het, verdwyn asof dit alles net ’n nare nagmerrie was, ’n droom wat jy kan vergeet. As iemand honger is en hy droom hy eet, is hy nog steeds honger as hy wakker word. En as iemand wat dors is, droom hy drink water, is sy keel nog steeds kurkdroog as hy wakker word, sy dors is nie geles nie. Net so sal dit gaan met die gesamentlike magte van al die nasies wat teen Jerusalem veg. Is julle verdwaas en verstom, kan julle dit nie glo nie? Hou julle dan maar blind as dit moet. Julle sal dronk wees, maar nie omdat julle wyn gedrink het nie, en julle sal loop en slinger sonder dat julle naby sterk drank was. Want die Here het julle in ’n diep slaap laat val en die profete en sieners wat julle oë en verstand moes wees, se oë is toe en hulle verstand is benewel, sodat hulle niks sien en verstaan nie. Die hele openbaring is nou vir julle soos ’n boek wat verseël is. As jy dit vir iemand gee wat kan lees, sal hy sê: “Ek kan dit nie lees nie; die boek is met ’n seël toegemaak.” En as jy dit vir iemand sou gee wat nie kan lees nie, sal hy sê: “Ek kan nie lees nie.” Die Here het gesê: Hierdie volk praat asof hulle My ken en My dien. Hulle gebruik al die regte en bekende woorde, maar hulle lewe baie ver van My af. Hulle godsdiens is niks anders nie as ’n klomp mensgemaakte reëls wat hulle uit die kop uit ken en opsê. Daarom gaan Ek hierdie volk skok deur een na die ander ongehoorde ding te doen. Hulle geleerdes sal gekke van hulleself maak en van al hulle kennis sal net mooi niks oorbly nie. Daar wag groot probleme op dié wat dink hulle kan hulle planne vir die Here wegsteek deur in die donker te konkel. Hulle dink by hulleself: “Niemand weet van ons nie, hulle kan nie sien wat ons doen nie.” Hoe naïef kan ’n mens wees! Die Here is tog die pottebakker, en die pottebakker en die klei kan mos nooit ewe belangrik wees nie. Julle is die kleipotte wat Hy gemaak het, julle kan nie omdraai en sê: “Hy het ons nie gemaak nie.” Nog minder kan ’n kleipot ooit van die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie.” Dit is nie meer lank nie, dan sal die wildernis waarin die Libanon verander het, weer ’n vrugbare gebied wees. En die landerye sal so vrugbaar wees dat dit wat daarop groei vir ’n bos aangesien sal word. In daardie tyd sal dowes kan hoor as daar uit ’n boek voorgelees word; blindes wat hulle lewe lank in die donker van blindheid vasgevang was, sal kan sien. Mense wat nog altyd afhanklik was van die Here sal nuwe vreugde saam met Hom beleef, en die arm mense sal bly wees oor wat die heilige God van Israel vir hulle gedoen het. Dit sal die einde wees van die wreedaards en die ligsinnige mense. Almal wat daarop uit was om kwaad te doen sal uitgeroei word, ook die mense wat ander vals van misdaad beskuldig en onskuldige mense aan die pen laat ry met hulle vals getuienis. Daarom sê die Here, wat vir Abraham verlos het, vir die nageslag van Jakob: Julle sal nie verder verkleineer word of skaam hoef te kry oor wie julle is nie. Want as julle die kinders sien waarmee Ek julle gaan seën, sal julle my heiligheid eer en erken dat Ek die heilige God van Israel is. Julle sal verbysterd staan voor My, die God van Jakob. Dan sal dié wat die pad byster geraak het, weer rigting kry en dié wat met alles ontevrede was, gewillig wees om te leer. Daar wag swaarkry op my opstandige kinders, sê die Here, want hulle maak planne wat nie van My af kom nie en voer dit uit. Hulle sluit verdrae wat nie volgens my wil is nie en daardeur stapel hulle hulle sonde al hoër op. Hulle stuur afvaardigings Egipte toe, sonder om My te raadpleeg, om daar hulp te gaan vra. Hulle stel hulle vertroue in die farao met die hoop dat hy hulle sal beskerm. Maar daardie hoop gaan op niks anders as vernedering vir hulle uitloop nie. Al strek sy mag van Soan tot by Ganes, sal dit hulle niks baat nie. Met hierdie volk sal hulle net aan die kortste ent trek. Al wat dit hulle in die sak sal bring, is skande en vernedering, beslis nie hulp nie. Kyk hoe trek die arme pakdiere deur die gevaarlike woestyngebied met sy leeus en slange en selfs vlieënde drake na Egipte toe. Die donkies en kamele kreun onder die gewig van die geskenke wat op hulle gelaai is. Hulle doen dit alles om hulp te gaan soek by ’n volk wat hulle nie kan help nie. Egipte se beloftes is leeg en die hulp wat hy kan gee, beteken niks. Daarom het Ek hom die bynaam Rahab gegee, die monster wat niks beteken nie. Gaan skryf hierdie woorde op waar Juda by is en bewaar dit veilig sodat dit ’n getuienis teen hulle kan wees in die toekoms, want hulle is ’n opstandige klomp leuenaars wat weier om na die Here se raad te luister. Vir die profete en die sieners sê hulle: “Ons wil niks van julle visioene weet nie. Moenie julle vir ons wil kom vertel wat reg is nie. Kom vertel ons liewer wat ons wil hoor, al is dit nie wat die Here vir julle gesê het nie. Gee pad voor ons met julle doemprofesieë. Ons is moeg daarvoor. Ons het meer as genoeg gehad van julle praatjies oor die heilige God van Israel. Hou op om vir ons te preek!” Maar nou sê Israel se heilige God vir julle: “Julle het my waarskuwing verwerp omdat julle staatmaak op afpersing en bedrog. Hierdie sonde is vir julle net so gevaarlik soos ’n stadsmuur wat begin oorhang het na die een kant toe: dit val in ’n oogwink en sonder waarskuwing om. Julle sal vernietig word net soos ’n kleipot wat fyn en flenters gebreek word totdat daar nie eers ’n groot genoeg potskerf oorbly waarmee ’n mens ’n paar kooltjies uit die vuur kan skep of selfs ’n bietjie water uit ’n put kan skep nie.” Maar die Here, die heilige Regeerder van Israel, sê: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” Maar daarvan wou julle niks weet nie. “Nee wat,” het julle gesê, “Egipte sal ons help. Hulle sal vir ons vinnige perde gee waarmee ons kan wegjaag.” Dit is waar: julle sal moet wegjaag met julle vinnige perde, want julle vyande sal nog vinniger perde hê. Een van hulle soldate sal duisend van julle op die vlug laat slaan. Net vyf van hulle is genoeg om julle almal te laat weghardloop. Daar sal nie veel van julle leër oorbly nie, en die klompie wat wel oorbly, sal so verlate wees soos ’n enkele vlagpaal wat bo-op ’n berg staan. En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Luister, mense van Sion, julle wat in Jerusalem woon, julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer. Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” Dan sal julle van al julle vuil goue en silwer afgode ontslae raak. Julle sal hulle soos ou, vuil lappe weggooi en sê: “Sies, ons wil die goed nie weer sien nie!” Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees. Die osse en die donkies wat julle gebruik om mee te ploeg sal goeie kos kry wat spesiaal vir hulle voorberei is. Op die dag as julle vyande verslaan en hulle forte vernietig word, sal daar strome water van elke heuwel en berg af vloei. Dan sal die maan net so helder soos die son skyn en die son sal sewe keer skerper as gewoonlik wees, byna asof al die sonlig van sewe dae bymekaargesit is op een dag. Dit is hoe dit sal lyk op dié dag wanneer die Here sy volk se stukkende plekke verbind en die wonde wat Hy hulle toegedien het, weer gesond maak. Kyk, die Here kom van ver af. Hy is woedend kwaad. As Hy praat, is sy woorde soos weerligstrale wat vuur en rook uit die grond slaan. Sy asem is soos ’n diep stroom water wat tot by jou nek kom en jou saamsleep. Hy kom om die nasies uit te sif soos ’n mens meel sif. Hy neem hulle gevange en vat hulle waarheen Hy wil, net soos ’n mens met ’n perd maak waarvoor jy ’n toom aangesit het: hy moet loop net waarheen jy hom lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor een van die heilige feeste. Julle sal bly wees soos wanneer ’n fluitspeler die groep pelgrims na Jerusalem, na die berg van die Here toe lei; Hy, die Beskermer van Israel. Dan sal die Here sy magtige stem laat hoor en die volle krag van sy woede laat neerreën in vlamme saam met ’n wolkbreuk, ’n storm en hael. Die Assiriërs sal doodbang wees as hulle die Here se stem hoor en die mag van sy woede ervaar. En die Here se volk sal met simbale en harpe tyd hou van elke hou waarmee die Here hulle slaan. Die Here het reeds ’n groot brandstapel vir die koning van Assirië gereedgemaak. Dit is ’n wye, diep vuurmaakplek met groot stapels hout sodat dit goed kan brand. Die Here sal dit met sy asem wat soos ’n vulkaan uitbars, aan die brand steek. Daar wag swaarkry op dié wat by Egipte hulp gaan soek. Hulle maak staat op Egipte se geweldige militêre mag; op hulle soldate en hulle strydwaens. In plaas daarvan om op die heilige God van Israel te vertrou is dit waar hulle vertroue lê. Die Here is tog die Een wat weet wat Hy doen. Dit is Hy wat die rampe stuur. Niks laat Hom van plan verander nie. Hy sal die kwaaddoeners en hulle bondgenote saam straf. Die Egiptenaars is mense, beslis nie gode nie, en hulle perde is vlees en bloed, beslis nie bonatuurlike wesens nie. Wanneer die Here sy arm optel en hulle klap, val hulle om soos ’n veertjie; die arme swakker nasie wat op hulle vertrou het, word deur dieselfde lot getref. Hulle sal saam vernietig word. Die Here het vir my gesê: Soos ’n leeu of ’n jong leeu, nadat hy ’n skaap gevang het, lê en grom om dit op te pas en hom nie steur aan die geraas van die groep skaapwagters wat hom probeer verjaag nie, net so laat die Here niemand toe om te probeer vat wat aan Hom behoort nie. Daar is niks wat die Here die Almagtige kan keer om te kom en op die berg Sion te kom veg vir wat Syne is nie. Net soos ’n voël heen en weer oor sy nes vlieg om dit te beskerm, so sprei Ek, die Here die Almagtige, my arms oor Jerusalem uit om die stad te beskerm. My volk, al is julle opstandige rebelle, draai terug na die Here toe! Ek weet daar kom ’n dag dat julle almal al die sondige goue en silwer afgodsbeelde wat julle gemaak het, sal weggooi. Dan sal die Assiriërs doodgemaak word, maar nie met mensgemaakte wapens nie. Nee, hulle sal vlug voor die Here en hulle jongmans sal weggevat word om slawearbeid te gaan verrig. Assirië se koning op wie hulle al hulle hoop gevestig het, sal paniekbevange op die vlug slaan. Hulle offisiere sal vol vrees van die slagveld af weghardloop en hulle soldate net so in die steek laat. So sê die Here ter ere van wie die vuur op die altaar in Sion vir die offers brand en ter ere van wie die altaar in Jerusalem van die brandoffers rook. Kyk, daar kom ’n koning wat met absolute regverdigheid regeer. Ook sy amptenare se administrasie sal eerlik wees. Net soos ’n sterk skuilplek iemand teen die wind en die storms beskerm, sal hulle die volk beskerm. Hulle sal vir die volk soos ’n stroom koue water in ’n droë land wees en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n kaal, onherbergsame land. Dan sal hulle oë en hulle ore oop wees om te sien wat die Here vir hulle wil wys, en te hoor wat Hy vir hulle wil sê. Selfs dié wat ongeduldig en oorhaastig was, sal rustig oor ’n saak dink en gesonde oordeel aan die dag lê. Dié wat onseker was van hulleself en stamelend hulle saak probeer stel het, sal vol vertroue praat en hulle punt maak. Dan sal niemand meer dink dat ’n dwaas iemand is op wie jy kan peil trek, of dat ’n skurk goeie motiewe het nie. Almal sal die goddelose dwase herken vir wat hulle is en aan die gek goed wat hulle doen. Hulle beledig die Here en gee nie om dat mense honger ly en dors is nie. Die skelmstreke van die skurk sal aan die lig kom. Hy is altyd met iets onderduims aan die gang en maak planne om deur leuens en bedrog die arm mense aan die kortste ent te laat trek. ’n Eerbare mens het suiwer motiewe en hy kom op vir wat reg is. Julle vroue wat so sorgvry en selfversekerd leef, moet mooi luister na wat ek te sê het. Op die oomblik kan julle wel selfversekerd aangaan asof niks julle ooit kan pla nie, maar oor ’n bietjie meer as ’n jaar sal julle beslis bekommerd raak, want daar sal nie druiwe wees om te oes of vrugte om te pluk nie. Tot nou toe het julle gemaklik en sorgvry geleef, maar nou het die tyd aangebreek vir julle om te bewe van vrees. Trek uit julle mooi klere en trek vir julle rouklere aan. Slaan op julle bors van hartseer oor julle welige landerye en julle vrugbare wingerde wat verwoes is. Treur oor my volk se grond wat deur die dorings en onkruid toegegroei word en oor die huise waarin daar soveel vrolikheid was en oor die vrolike stad waarin daar uitbundig feesgevier is. Selfs die paleis is verlate en die stad wat altyd so besig was, is leeg. Waar die wagtoring op die heuwel was, sal dit vir altyd ’n veld wees waar die wildedonkies loop en vreet en die veetroppe wei. Dit sal so bly totdat die Gees van die hemel af op ons uitgestort word. Dan word die wildernis soos ’n vrugteboord en die vrugteboord word so dig dat dit vir ’n bos aangesien word. Dan sal daar oral in die land reg en geregtigheid wees. Dit sal die oorsaak wees dat daar vrede in die land is en almal sal vir altyd rus en veiligheid kan geniet. My volk sal rustig en sonder bekommernisse in hulle huise kan bly. Hulle sal veilig en onbesorg wees. Maar eers sal die vyand verwoes word soos wanneer hael die bosse tref en hulle hoofstad sal met die grond gelykgemaak word. Maar God sal sy mense seën. Waar julle saai, sal die oeste geil groei van die baie water. En julle donkies en vee sal los kan loop om op die groen weivelde te wei. Jou ondergang wag op jou, verwoester, want al het niemand jou verwoes nie, het jy nie omgegee om ander nasies uit te roei nie. Jy verwag dat ander jou moet respekteer en hulle beloftes moet nakom, maar jý leef van leuens en ontrou. Wel, nou is dit jou beurt om verraai en vernietig te word, net soos jy met die ander nasies gedoen het. Here, help ons, want ons het ons hoop op U gevestig! Beskerm ons elke dag en red ons as ons in die moeilikheid beland. Slegs die klank van u stem is genoeg om die vyand uitmekaar te laat spat en te laat vlug. Die mense sal op die buit wat hulle agterlaat, toesak en dit plunder soos ’n swerm sprinkane op ’n groen land. Die Here is groot en Hy regeer oor die hele aarde. Hy sal sorg dat daar reg en geregtigheid in Jerusalem geskied. In daardie tyd sal Hy die fondament wees waarop julle met vertroue kan bou. Hy sal julle oorlaai met ’n skat van wysheid en kennis wat tot julle verlossing sal lei. Maar die sleutel tot hierdie skat is die ontsag wat julle vir die Here het. Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie. Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie. Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan. Nou gaan Ek ingryp, sê die Here, Ek sal julle wys hoe magtig Ek is! Al die planne wat julle gemaak het, is nutteloos, julle sal niks regkry nie. Die verskriklike goed waarmee julle ander nasies gedreig het, sal omgekeer word en soos ’n verwoestende vuur op julle neerkom. Julle mense sal totaal vernietig word soos die klippe wat verbrand word om kalkpoeier te maak. Hulle sal tot as verbrand word soos ’n hoop droë doringtakke wat aan die brand gesteek word. Vertel vir al die volke wat Ek gedoen het, of hulle naby is of ver, sodat hulle my mag sal erken. Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?” Slegs iemand wat ’n eerlike lewe lei en die waarheid praat, wat nie ander afpers om geld te maak nie en niks met omkopery te doen het nie, het die reg om naby die Here te kom. Moenie eers na iemand luister wat ’n moord of misdaad beplan nie. As ’n mens so lewe, sal jy so veilig wees soos iemand wat in ’n sterk fort bly wat van klip gebou is en hoog op ’n berg staan met ’n oorvloed kos en water. Met julle eie oë sal julle ’n koning sien wat in al sy koninklike majesteit oor ’n groot en uitgestrekte land regeer. Die gedagte aan die tye van vreemde belastinggaarders en spioene wat die stad se militêre mag kom verken het, sal net ’n vae herinnering wees. Julle sal daardie vermetele volk met die taal wat julle nie kan verstaan nie, nooit weer sien nie. Maar kyk na Jerusalem, die stad waarin die feeste vir die Here gehou word. Jerusalem, ’n veilige, permanente blyplek. Dit is soos ’n tent wat nooit geskuif word nie, waarvan die tentpenne stewig en vas in die grond ingekap is en die toue wat dit regop hou, nooit breek nie. Daar sal die Here vir ons sy mag wys. Ons sal langs breë riviere en strome bly, maar daar sal nie vyandige skepe op vaar wat ons kan aanval nie, want die Here is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Hy sal ons red. Die vyand se skepe sal nutteloos wees, die toue wat die maste stewig en regop moet hou, sal los hang en die seile sal nie gespan kan word nie. Nie een van die stad se inwoners sal siek wees nie. En die Here sal almal wat in Jerusalem bly, se sonde vergewe. Kom nader, nasies. Gee aandag, volke. Kom luister na my! Die aarde en alles wat op die aarde is, moet hoor wat ek te sê het. Die Here is kwaad vir al die nasies en hulle weermagte. Hy het hulle tot vernietiging verdoem. Hulle bloed sal in strome van die berge afstroom en hulle dooies sal nie begrawe word nie. Die lyke sal net daar in die oopte lê en ontbind. Al die hemelliggame sal verkrummel en tot niet gaan. Die hemel sal soos ’n boekrol opgerol word. Die sterre sal uit die hemel uit val soos blare wat van ’n wingerdstok afval. Dan sal die Here se swaard in die donker hemel verskyn en soos ’n verblindende weerligstraal op Edom neerkom, want die Here het besluit om hulle te vernietig. Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van die vet asof dit gebruik is om die lammers en die bokramme vir die offer te slag. Want die Here gaan ’n offerfees in Bosra hou. Daar gaan ’n groot slagting in Edom wees. Die mense sal saam met die wilde beeste en jong bulle doodgemaak word totdat die grond deurweek is van hulle bloed en vet, want die dag van afrekening het aangebreek. Die Here sal Israel se saak verdedig en wraak neem op haar vyande. Edom se riviere sal in teer verander en die grond in swael. Die hele land sal een stuk brandende teer word wat dag en nag sal bly brand sodat die rook gedurig daaruit optrek. Die land sal geslagte lank in puin lê tot in die verre toekoms en niemand sal weer daardeur trek nie. Die enigste inwoners van die land sal uile en kraaie wees. Die Here gaan Edom uitmeet met ’n maatband wat verwoesting saai en ’n waterpas wat vernietiging uitwys. Daar sal nie meer ’n koninkryk wees waaroor ’n koning kan regeer nie en daar sal ook nie een van die leiers oorbly wat sou kon leiding gee nie. Daar sal dorings in die paleise van Edom opkom en welig daar groei. Hulle forte en ander versterkte plekke sal toegegroei wees van allerhande onkruid. Die bouvalle van hierdie plekke sal die lêplek van die jakkalse en die volstruise word. Die wilde diere van die woestyn en die hiënas sal saam daar aas en hulle getjank sal soos die geluid van duiwelse geeste klink. Die vroulike naggees Lilith sal haar blyplek daar maak. Gevaarlike slange sal daar nes maak en eiers lê en die eiers sal daar uitbroei. Ook die aasvoëls sal dit hulle bymekaarkomplek maak. Gaan lees gerus die boek van die Here, dan sal julle sien dat al hierdie diere daarin genoem word, elkeen met sy maat. Die Here het die opdrag gegee en sy Gees maak hulle bymekaar. Die Here verdeel die land onder hulle sodat elkeen ’n deel het om op te bly. Daar sal hulle geslag na geslag bly omdat dit vir altyd aan hulle behoort. In daardie dae sal selfs die woestyn ’n mooi plek wees. Dit sal oortrek wees met die mooiste blomme. Die woestyn sal vol groot, groen bome wees soos dié wat op die Libanonberge groei. Daar sal wingerde groei wat enige tyd net sulke goeie druiwe sal dra soos dié van die Karmelberg-omgewing met landerye wat selfs vrugbaarder is as dié van die Saronvlakte. Dit sal die Here se manier wees om sy invloed in hierdie wêreld te wys sodat almal kan weet wie Hy is. Hierdie nuus is bedoel om mense wat moedeloos geword het, op te beur; om dié wat voel dat hulle net nie verder kan nie omdat alles net te veel geword het, moed in te praat sodat hulle met nuwe oë na die toekoms kan kyk. Gaan sê vir dié wat bang is hulle moet op die Here vertrou en hulle nie oor alles bekommer nie. Die Here is op pad om hulle vyande die les van hulle lewe te leer, en wanneer Hy daarmee klaar is, sal Hy sy mense se omstandighede verander. Van die gevolge hiervan sal wees dat blinde mense sal kan sien en dat dowe mense sal kan hoor. Die verlamde mense wat weer kan loop, sal rondhuppel en spring soos wildsbokke. Mense wat voorheen stom was, sal sing van blydskap. Die woestyn sal ’n paradys word met volop fonteine en riviere. Die droë modderpanne wat so deur die son gebak is dat alles verskroei en uitgedroog was, sal in waterryke mere verander. Oral sal fonteine uit die grond uit opborrel waarby mense sou kon rus en water drink. Waar daar voorheen net sand en klippe was waar die jakkalse hulle gate kon grawe en waar geen ander mens of dier gekom het nie, gaan die hele omgewing verander. Daar sal soveel water wees dat daar watergras, riete en biesies sal groei. Daar sal ’n grootpad deur die gebied loop wat voorheen ’n woestyn was. Hierdie pad is bedoel vir mense wat ’n verhouding met die Here het en wat reg lewe. Mense wat God nie ernstig opneem nie, sal nooit die reg hê om hierdie pad te gebruik nie. Daar sal nie gevare op die pad wees nie, want die Here het dit spesiaal vir sy kinders gebou sodat hulle veilig en maklik by Hom kan uitkom. Hierdie kinders van wie daar gepraat word, is die mense wat deur die Here vrygekoop is van hulle ou slawelewe. Hulle sal vrolik en opgeruimd met hierdie pad na Jerusalem toe terugkom. Hulle hartseer en swaarkry sal iets van die verlede wees. In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en hulle ingeneem. Hy het toe sy persoonlike assistent met ’n groot leër van Lakis af na Jerusalem toe gestuur met die bedoeling om koning Hiskia te dwing om oor te gee. Die Assiriërs het stelling ingeneem by die waterkanaal wat die water van die boonste dam af na die stad toe gelei het. Dit was langs die pad by die stuk grond waar die mense gewerk het wat die materiaal vir die klere gekleur het. Drie van Hiskia se staatsamptenare is toe af na Sanherib se persoonlike assistent toe om met hom te gaan onderhandel. Hulle was die paleisbestuurder, Eljakim (sy pa was Gilkija), die staatsekretaris, Sebna, en die hoof uitvoerende beampte van die paleis, Joag (sy pa was Asaf). Sanherib se assistent wou by hulle weet waarom koning Hiskia so selfversekerd was. Hy het hulle toe teruggestuur na Hiskia toe met hierdie boodskap van die koning van Assirië: “Dink jy mense se leë beloftes gaan jou help oorlog maak? Dit is tog nie hoe ’n mens jou strategie beplan nie! Watter een van jou bondgenote dink jy gaan jou help om teen Assirië te veg? Ek weet jy dink Egipte gaan jou help, maar dit is ’n groot fout. Om op die koning van Egipte vir militêre hulp te vertrou in so ’n situasie is net so goed as om ’n geknakte riet te vat en te dink dit kan ’n goeie kierie wees. Die eerste keer as jy ’n bietjie hard daarop leun, breek die riet en sny boonop nog jou hand ook stukkend. Wees gewaarsku, die koning van Egipte is onbetroubaar! Of wil jy dalk vir my vertel dat jy nou weer ewe skielik op die Here jou God vertrou? As ek reg onthou, het jy, koning Hiskia, Hom erg beledig. Was dit nie sy altare wat jy persoonlik laat afbreek het met die opdrag dat die mense van Juda en Jerusalem slegs by die altaar in Jerusalem mag offer nie? Ek sê jou wat, kom ons gaan ’n weddenskap aan. Al gee die koning van Assirië vir jou 2 000 perde as ’n geskenk, sal jy nie eers genoeg soldate bymekaar kan maak om op hulle te ry nie. Jy en jou weermag staan nie ’n kans teen selfs die swakste van my koning se offisiere nie. Nie eens met die koning van Egipte se hulp met strydwaens en ekstra soldate staan jy ’n kans nie. Wat meer is, dink jy ek het sommer uit my eie besluit om hierdie land van jou aan te val sonder om die Here te raadpleeg? Trouens, dit is juis die Here wat my die opdrag gegee het om hierdie land aan te val en dit te vernietig.” Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die koning se verteenwoordiger: “Praat asseblief eerder Aramees met ons, ons kan dit goed verstaan. Moenie Hebreeus praat nie, want die wagte daar op die stadsmuur kan elke woord wat jy sê, hoor en verstaan.” Maar hy was reg met ’n antwoord vir hulle: “Dink julle die koning het my net na Hiskia en na julle paar toe gestuur met sy waarskuwing? O nee, die mense wat daar op die stadsmuur is, moet dit ook hoor, want hulle gaan die lydende party wees. Dit is hulle wat, as die hongersnood kom, hulle eie ontlasting sal moet eet en hulle eie urine sal moet drink om aan die lewe te probeer bly!” Hy het toe opgestaan en kliphard in Hebreeus vir die mense op die muur geskreeu: “Luister wat sê die groot koning van Assirië! Moenie dat koning Hiskia julle mislei nie. Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie. Hy probeer julle laat glo dat julle op die Here kan vertrou en dat die Here julle sal verlos. Hy lieg as hy julle probeer wysmaak dat Jerusalem nooit in die koning van Assirië se mag sal kom nie. Moenie na Hiskia luister nie! Aanvaar eerder hierdie voorwaardes van die koning van Assirië: Kom uit en gee julle vrywillig oor. As julle dit doen, sal ek julle toelaat om in vrede te bly lewe. Julle sal toegelaat word om op julle eie grond aan te bly en julle eie vrugte te bly eet en water uit julle eie putte te drink. Later sal ek julle kom haal sodat julle saam met my kan teruggaan na ’n land toe wat net so vrugbaar is soos julle eie, met volop kos. Moenie dat Hiskia julle mislei om te dink dat die Here julle sal red nie. Dink net vir ’n oomblik mooi daaroor: Kon enige van die ander volke se gode hulle al ooit uit die Assiriese koning se mag red? Waar was die gode van Hamat en Arpad toe ek hulle gebiede ingeneem het? En wat van die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria dalk red? Daar was nog nie een god wat sy land en sy mense teen my kon verdedig nie, nie een nie! Wat gee julle die idee dat die Here Jerusalem kan red?” Die soldate op die mure het doodstil gebly, want koning Hiskia het hulle beveel om nie ’n woord te sê nie. Eljakim, Sebna en Joag het toe van ontsteltenis hulle klere geskeur. Daarna is hulle terug na koning Hiskia toe om vir hom die hele storie te gaan vertel. Nadat Hiskia hulle verslag gehoor het, het hy van ontsteltenis ook sy klere geskeur. Hy het toe vir hom rouklere aangetrek en tempel toe gegaan om te gaan bid en by die Here raad te vra. Daarna stuur hy vir Eljakim en Sebna saam met die leiers van die priesters na Jesaja toe, almal ook met rouklere aan. By Jesaja aangekom, het hulle vir hom die volgende boodskap van Hiskia af gegee: “Ons beleef ’n verskriklike tyd. Ons word bedreig en beledig, dis eintlik tragies, maar ons is soos ’n swanger vrou wat moet geboorte skenk, maar nie die krag het om te kraam nie. Miskien het die Here jou God gehoor hoe die Assiriese amptenaar die lewende God beledig en uittart en sal Hy hom straf vir wat hy gedoen het. Maar in elk geval vra ek jou om te bid vir die klompie van ons wat nog oor is.” Nadat Hiskia se amptenare die boodskap afgelewer het, het Jesaja hulle met sy eie boodskap huis toe gestuur. “Gaan sê vir die koning: so sê die Here: Moenie jou ontstel oor die lasterlike goed wat die amptenaar van My gesê het en bang wees vir sy dreigemente nie. Luister, Ek sal seker maak dat hy ’n boodskap van sy land af kry dat hy dringend soontoe moet terugkom. Dan sal Ek sorg dat hy in sy eie land doodgemaak word.” Op pad terug van Jerusalem af het die Assiriese amptenaar gehoor dat Sanherib uit Lakis uit weg is en besig was om teen Libna te veg. Hy is toe soontoe om met hom te gaan beraadslaag oor wat in Jerusalem gebeur het. Nie lank daarna nie het nog ’n berig by Sanherib aangekom. Die berig het gesê dat Tirhaka, die koning van Kus, op pad was om hom aan te val. Voor hy daar weg is om teen Tirhaka te gaan veg, het hy weer vir Hiskia ’n boodskap gestuur: “Moenie dat jou God jou mislei met praatjies dat ek nie in staat is om Jerusalem in te neem nie. Jy weet baie goed dat die konings van Assirië nog altyd elke land verwoes het wat hulle aangeval het. Wat maak jou so anders? Was daar enige van die ander volke se gode wat hulle mense kon red? My voorgangers het hulle almal vernietig. Noem hulle op: Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar. Waar is die konings van Hamat, Arpad, Sefarwajim, Hena en Awwa?” Nadat Hiskia die boodskap gelees het, is hy tempel toe daarmee. Daar het hy die brief vir die Here voorgelees en gebid: “Almagtige Here, God van Israel, U wat op u troon bokant die gerubs sit, U alleen is God van al die koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Here, luister wat sê Sanherib en kyk wat doen hy. Hierdie boodskap wat hy gestuur het, dryf die spot met U, die lewende God! Here, ons weet almal dat hy die waarheid praat oor al die nasies wat die Assiriese konings al verwoes het, en hoedat hulle hulle gode gevat en in die vuur gegooi het om te verbrand. Maar ons weet hoekom hulle dit kon regkry. Dit was nikswerd afgode, beelde van hout en klip wat deur mense gemaak is. Daarom bid ek: Here ons God, beskerm ons teen die aanvalle van die Assiriërs. Dan sal al die mense van die wêreld besef dat net U, Here, werklik God is.” Hierop het Jesaja die volgende boodskap van die Here vir Hiskia gestuur: Die Here die God van Israel het jou gebed oor Sanherib, die koning van Assirië, gehoor. Vir hom het die Here die volgende boodskap: Die stad Sion spot met jou en verag jou, Sanherib. Jerusalem steek vir jou tong uit en kyk jou met minagting agterna terwyl jy wegvlug. Vir wie dink jy het jy so verneder en belaglik gemaak? Teenoor wie het jy so grootgepraat en op wie het jy neergesien? Dit was op My, die heilige God van Israel. Jy het jou amptenare gestuur om die Here te spot en uit te tart. Dit is jy wat gespog het oor hoe baie strydwaens jy het en hoedat jy met hierdie strydwaens reg oor die Libanonberge sal ry, hoedat jy selfs die hoogste en mooiste seder- en sipresbome tot teen die grond gaan afkap. Jy het gespog dat jy die hoogste wegkruipplekke uitgesnuffel het en diep in die bos ingedring het sodat niemand vir jou kan wegkruip nie. “Ek het in baie vreemde lande hulle fonteine vir my gevat sodat ek my dors kon les met hulle water. Ek het selfs die riviere in Egipte opgedam sodat my soldate daardeur kon trek,” spog jy. Sanherib, is jy die enigste een wat dit nie weet nie; wie dink jy het al hierdie dinge beplan? Dit was Ek, die Here! Ek het lank terug al beplan dat jy versterkte stede in murasies sal verander. Al wat gebeur het, is dat Ek jou nou toegelaat het om dit te doen. Dit is hoekom hulle mense nie teen jou kan veg nie en hoekom hulle so ’n maklike prooi vir jou is. Hulle het geen verweer nie, byna soos nuutgeplante gras waaroor ’n klomp mense skielik begin loop: daardie gras staan nie ’n kans om te groei nie. Maar Ek ken jou. Ek weet van elke beweging wat jy maak. Ek weet ook hoe jy My in jou woede uitgeskel het. Omdat Ek al hierdie goed moes beleef, gaan Ek jou mak maak. As ’n mens ’n ring in ’n bul se neus sit, is hy so mak soos ’n lam en kan jy met hom doen net wat jy wil. So gaan Ek vir jou ’n ring in jou neus sit en jy sal moet doen wat Ek sê. En soos ’n mens ’n perd kan stuur net waarheen jy wil as jy ’n stang in sy bek gesit het, gaan Ek jou stuur; in een rigting: terug met die pad waarmee jy gekom het! Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hierdie is die bewys dat die Here hierdie stad teen die koning van Assirië sal beskerm. Hierdie jaar en volgende jaar sal julle koring eet wat vanself opgekom het van die saad wat in die grond oorgebly het. Maar die jaar daarop sal julle weer kan saai en oes. Julle sal ook julle wingerde kan versorg en van die druiwe eet. Die klompie mense van Juda wat die slag oorleef het, sal weer gevestig raak in die land, soos ’n boom wat sy wortels in die grond laat ingroei en dan sterk word en later vrugte dra. Daar sal mense oorbly in Jerusalem en op Sion en hulle sal van daar af weer ’n nuwe begin maak. Ek, die Here die Almagtige, sal daarvoor sorg omdat Ek hulle so liefhet. Wat die koning van Assirië betref, sê die Here: hy sal nie sy voete in hierdie stad sit of ’n enkele pyl soontoe afskiet nie. Niemand van sy soldate met hulle swaarde en skilde sal ’n kans kry om eens in die rigting van die stad te beweeg of om grondwalle teen die muur te probeer opbou sodat hulle in die stad kan inkom nie. Die koning van Assirië sal met leë hande teruggaan met dieselfde pad waarmee hy gekom het. Hy sal nie naby Jerusalem kom nie. Ek, die Here, sê so! Ek sal die stad beskerm en verdedig om my eer te beskerm en ter wille van my belofte wat Ek aan my dienaar, Dawid, gemaak het.” Daardie nag is die engel van die Here in die Assiriërs se kamp in en hy het 185 000 van hulle soldate doodgemaak. Toe die oorlewendes die volgende môre wakker word, het die lyke die hele kamp vol gelê. Sanherib het net daar kamp opgebreek en teruggegaan Nineve toe. Op ’n dag het hy na een van sy afgodstempels toe gegaan om sy god met die naam Nisrog te aanbid. Twee van sy seuns, Adrammelek en Sareser, het stilletjies ingekom en hom met hulle swaarde doodgesteek. Daarna het hulle na die gebied van Ararat toe gevlug en daar gaan bly. Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg. In dié tyd het Hiskia tot die dood toe siek geword. Die profeet Jesaja gaan sê toe vir hom: “Die Here sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie van hierdie siekte herstel nie, jy sal doodgaan.” Toe Hiskia dit hoor, het hy met sy gesig na die muur toe gedraai en gebid: “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek my bes probeer het om vir U te leef. Ek was my hele lewe aan U getrou en ek het altyd gedoen wat U wou hê... ” en toe het sy gemoed te vol geword om verder te bid. Die Here het toe vir Jesaja gesê: “Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het gehoor wat jy gebid het en Ek sien jou hartseer. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe. Wat meer is, Ek sal jou en die stad beskerm teen die koning van Assirië. Hy sal niks aan julle kan doen nie. Ek gee vir jou ’n teken om te bewys dat Ek my woord hieroor sal hou. Ek sal die skaduwee op die sonwyser wat koning Agas nog opgesit het, met tien trappe laat terugskuif.” Dit is presies wat gebeur het: die skaduwee het tien trappe teruggeskuif op die sonwyser. Nadat Hiskia gesond geword het, het hy hierdie gedig geskryf om te vertel wat met hom gebeur het: Ek het gedink dat ek in my beste jare sou doodgaan en begrawe sou word, dat ek nie kans sou kry om ’n vol lewe te leef nie. Ek het gedink dat ek nooit in my lewe hier op aarde weer die Here sou sien nie, dat ek maar my vriende sou moes groet. Dit het vir my gevoel of my lewe in ’n oogwink van my af weggeruk word, soos wanneer ’n rukwind skielik ’n tent uit die grond uitruk en dit wegwaai, asof my lewe kortgeknip is soos die oortollige wol van ’n weefraam wat afgeknip word nadat die mat klaar geweef is. My lewe was verby! Ek het probeer om nie te kla nie, maar die pyn het my oorweldig; dit het aangehou vreet aan my soos ’n leeu wat aanhou kou aan die bene van sy prooi. My lewe was verby! My stem het so dun geword dat ek soos ’n swaeltjie geklink het wat piep. Ek het so baie gebid om hulp dat my oë naderhand van moegheid toegeval het. Here, ek is bang, help my, asseblief. Maar wat kan ek sê? Die Here self het hierdie siekte gestuur, ek verstaan dit nie, maar ek weet dat ek vir die res van my lewe die letsels sal dra van wat ek beleef het. Ek het gedink ek moet my mense groet en afskeid neem. Maar, Here, U het my gesond gemaak en ek lewe weer! Dit was goed om hierdie krisis te beleef, want nou besef ek dat U my nie laat doodgaan het nie en al my sonde vergewe het. Iemand wat dood is, kan U tog nie loof en prys nie. Die dooies in hulle grafte hoop nie langer op u getrouheid nie. Dit is net mense wat nog leef wat U kan prys en dankie sê soos ek dit vandag doen. Elke geslag sal vir die volgende geslag van u getrouheid vertel. Here, U het my gesond gemaak. Ons sal vir die res van my lewe hierdie danklied in u tempel gaan sing terwyl ons op ons liere speel. Tydens Hiskia se siekte het Jesaja gesê hulle moet ’n pleister van gedroogde vye maak en dit op die koning se sweer sit. Hiskia wou weet watter bewys die Here hom sou gee dat hy weer gesond sou word en die Here in die tempel sou kon aanbid. Nie te lank na hierdie gebeure nie het koning Merodak-Baladan, die nuwe koning van Babel, ’n paar van sy amptenare na Hiskia toe gestuur met briewe en geskenke. Hy het dit gedoen nadat hy van Hiskia se siekte gehoor het en hoe hy gesond geword het. Hiskia was baie beïndruk met die besoekers en hy het hulle oral rondgevat en by hulle gespog met al sy geld en besittings en ook met sy militêre mag. Daar was nie ’n plek in sy koninkryk wat hy nie vir hulle gewys het nie. Jesaja het toe met Hiskia gaan praat en vir hom gevra: “Wie is die mense en wat het jy alles vir hulle gesê?” “Hulle kom van ’n baie ver plek af,” was Hiskia se antwoord, “van Babel af.” “Wat het hulle alles in jou paleis gesien?” wou Jesaja weet. “Hulle het alles gesien,” het Hiskia geantwoord, “ek het nie ’n enkele ding vir hulle weggesteek nie.” “Nou luister,” sê Jesaja toe vir hom, “hoor ’n bietjie wat die Here hieroor te sê het: Daar kom ’n tyd dat al jou besittings en alles wat jou voorgangers bymekaargemaak het, na Babel toe weggedra gaan word. Daar sal net mooi niks hier oorbly nie. Van jou eie seuns wat hier prinse is, sal ook in ballingskap weggevoer word en hulle sal gedwing word om as paleishulpe vir die koning van Babel te werk.” Hiskia het die boodskap verkeerd verstaan en daarom het hy vir Jesaja gesê: “Dit is goed so! Ten minste sal daar in my leeftyd vrede en veiligheid vir die land wees.” Julle God sê: Gaan praat my volk moed in. Gaan troos hulle. Praat mooi met die mense van Jerusalem. Sê vir hulle: Julle gaan nie aanhou swaarkry nie. Julle straf is nou verby. Julle het heeltemal klaar betaal vir alles wat julle teen die Here verkeerd gedoen het. Luister, daar is ’n stem wat uitroep: “Bou ’n pad vir die Here deur die woestyn. Maak vir ons God ’n breë, reguit pad dwarsdeur die veld. Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad. Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.” Iemand sê vir my: “Jy moet ’n boodskap gaan bring.” Ek vra: “Wat moet ek gaan sê?” “Gaan sê vir hulle dat alle mense eintlik maar soos gras is wat weer doodgaan. Hulle is soos die blomme in die veld. Binne ’n dag is hulle klaar geblom. Wanneer die Here die wind daaroor laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Die mense is ook maar soos die gras. Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd.” Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!” Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf. Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma. Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg? Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra? By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan? Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie. Al die bome op die Libanonberg is nie eens genoeg om vir Hom een offer te bring nie. Al die diere op die Libanonberg is nie eens genoeg vir een offer vir die Here nie. Al die nasies tel niks teenoor die Here nie. Hulle is vir Hom soos lug wat leeg is. Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf? Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie. Hy is ook nie soos ’n man se afgod wat ’n beeldhouer vir hom uit harde hout gemaak het wat op sy voete kan staan nie. Weet julle nie? Verstaan julle dan nie wat al van die begin van die wêreld af vir julle vertel is nie? Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly. Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie. Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai. Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?” Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie. Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie? Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie. Hy gee vir dié wat uitgeput is weer nuwe krag. Hy maak dié wat swak geword het, weer sterk. Selfs dié wat jonk is se krag kan ingee. Dié wat nog in die krag van hulle lewe is, kan inmekaarsak. Maar hulle wat op die Here vertrou, kry altyd weer krag. Hulle word soos ’n arend wat vlieg. Hulle hardloop en word nooit moeg nie. Hulle loop en raak nooit uitgeput nie. Die Here sê vir die lande wat oorkant die see is: Wag ’n bietjie. Maak julle reg. Kom nader en kom stel julle saak. Kom, laat ons dit in die hof gaan uitmaak. Wie anders is dit as die Here wat hierdie koning uit die ooste sal laat kom om alles voor hom plat te trap? Wie anders sal hom help om nasies te oorwin en konings voor hom te laat buig? Wie anders help hom om die nasies soos stofwolke met sy swaard voor hom uit te jaag? Wie anders help hom om hulle met sy boog op loop te jaag soos gras wat voor die wind wegwaai? Hy agtervolg hulle. Hy oorwin hulle. Hy marsjeer met sy leër deur plekke waar hy nog nooit was nie. Wie sal dit alles laat gebeur? Wie het nog van altyd af besluit wat met die mense moet gebeur? Dit was nog nooit enige iemand anders nie as net Ek, die Here. Ek was daar reg van die begin af. Ek sal nog steeds daar wees reg teen die einde. Die lande wat oorkant die see is, het gesien wat gebeur het. Hulle het bang geword. Die lande oor die hele wêreld begin bewe. Hulle kom bymekaar om reg te maak vir oorlog. Hulle praat mekaar moed in. Hulle sê vir mekaar: “Ons moet nou sterk wees.” Die kunstenaar wat met yster werk, help die een wat met goud werk om gou ’n afgod te maak. Die een wat goud uitklop, staan by die een wat yster op die aambeeld smee. Hulle sê vir mekaar: “Ons vorder goed.” Hulle maak ’n afgodsbeeld en sit hom aanmekaar met klinknaels sodat hy nie uitmekaar kan val nie. Maar jy hoef nie bang te wees nie, Israel. Jy behoort mos aan My. Jy is Jakob wat Ek vir My uitgekies het. Jy is my vriend Abraham se kind. Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm. Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn. Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie. Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan. Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel. Ek maak jou soos ’n masjien waarmee ’n mens graan dors, wat nuwe, skerp lemme gekry het. Jy sal selfs berge kan dors en hulle fynmaal. Jy sal heuwels aan flarde kan sny soos graanstoppels. Jy sal hulle uitstrooi in die lug en die wind sal hulle wegwaai. ’n Windstorm sal hulle oor die aarde verstrooi. Dan sal jy sing van blydskap oor die Here. Jy sal die hoë God van Israel loof en prys. Wanneer Israel soos hulpelose mense verniet na water soek, wanneer hulle wil doodgaan van die dors, sal Ek, die Here, hulle gebede verhoor. Die God van Israel sal nie sy volk in die steek laat nie. Ek sal riviere tussen die droë berge deur laat loop. Ek sal fonteine onder in die laagtes laat uitborrel. Ek sal waterpanne in die woestynwêreld gee. Daar sal waterstrome deur droë gebiede vloei. Ek sal sederbome in die woestyn laat groei. Daar sal akasias, mirtebome en olyfbome staan. Waar dit heeltemal droog is, sal Ek sipresse, plataanbome en dennebome plant. Dan sal almal sien wat gebeur het. Hulle sal insien en erken dat dit die Here is wat die wonderwerk laat gebeur het. Die hoë God van Israel het die onmoontlike reggekry. Die Here sê vir die afgode: Kom stel nou julle kant van die saak. Kom wys wat julle kan doen, sê Jakob se Koning. Kom vertel vir ons wat nog vorentoe gaan gebeur. Verduidelik vir ons wat beteken die dinge wat in die verlede gebeur het. Ons sal dan weet wat alles beteken wat nog vorentoe moet gebeur. Sê vir ons presies wat in die toekoms gaan gebeur, dan sal ons weet dat julle regtig gode is. Doen enigiets, goed of sleg, dat ons verbaas kan staan oor wat julle kan doen. Dan sal ons julle aanbid. Ag nee wat, julle is niks werd nie. Wat julle doen, beteken niks. Iemand wat vir julle kies, maak homself belaglik. Ek het ’n sekere man wat in die ooste woon, laat kom. Hy het die ander konings vanuit die noorde aangeval en hulle in die modder getrap. Hy het gemaak soos die pottebakker wat die klei onder sy voete trap. Was daar ’n afgod wat al voor die tyd gesê het dat dit sal gebeur, sodat ons dit voor die tyd kon weet en toegee dat hy reg was? Nee, daar was niemand wat dit kon sê nie. Nie een van ons het so iets voor die tyd gehoor nie. Niemand het enigeen so iets hoor sê nie. Ek was die Een wat al voor die tyd vir Sion laat sê het: Jou mense gaan terugkom. Ek het vir Jerusalem die boodskap gestuur met die goeie nuus. Ek het verniet gewag dat een van julle afgode dit vir julle sou sê. Onder hulle was daar nie een wat daaroor gepraat het nie. Ek het verniet gevra dat een van hulle iets daaroor sal kom sê. Nee wat, nie een van hulle beteken enigiets nie. Wat hulle doen, beteken niks. Die afgodsbeelde is net ’n bondel wind. Ek het iemand wat vir My werk. Ek help hom. Ek het hom spesiaal gekies. Ek hou baie van hom. Ek het hom die krag gegee om vir die nasies te leer wat reg is. Hy doen dit nie met ’n geskreeu en ’n lawaai nie. Hy gaan nie op straat te kere nie. Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond in trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie. Hy sal eerlik wees wanneer hy sê wat reg is. Hy sal hom nie laat keer om vir die wêreld te leer wat reg is nie. Die lande oorkant die see sal wag om te hoor wat hy sê. Die Here God het die blou lug oor die aarde gespan. Hy het die uitgestrekte aarde gemaak. Hy het dit volgemaak met alles wat daarop lewe. Hy gee lewe aan almal wat op aarde is. Hy gee vir al die volke op aarde asem om te lewe. Hy sê vir hierdie man: Ek is die Here. Ek het jou geroep om geregtigheid op aarde te bring. Ek sal jou hande sterk maak en jou beskerm. Deur jou maak Ek ’n ooreenkoms met die volke. Jy is die lig wat die nasies na My toe lei. Jy sal dié wat blind was, laat sien. Jy sal dié wat in tronke was, laat uitkom. Jy sal dié wat in donker selle gebly het, daaruit bevry. My naam is die Here. Ek staan die eer wat Ek moet ontvang, aan niemand anders af nie. Ek laat geen afgod toe om soos Ek grootgemaak te word nie. Wat Ek voor die tyd al vir julle gesê het, gaan net so gebeur soos Ek gesê het. Ek laat julle hoor van dinge wat nog moet kom, selfs al voor dit begin het om te gebeur. Julle moet vir die Here ’n nuwe lied sing. Oor die hele aarde moet Hy grootgemaak word. Almal wat op die see vaar en alles wat in die see is, moet saam sing. Die lande oorkant die see en almal wat daar woon, moet God verheerlik. Die woestyn en die dorpe wat daarin is, moet vir die Here sing. Dié wat in Kedar bly, moet sy Naam grootmaak. Dié wat in Sela bly, moet juig. Hulle moet van die toppe van die berge af jubel vir die Here. Dié wat in die lande oor die see bly, moet aan die Here eer bewys. Hulle moet sy Naam grootmaak. Die Here is soos ’n soldaat wat gaan oorlog maak. Hy is soos ’n man wat reg is om te gaan veg. Hy skreeu en gee die oorlogskreet. Hy oorrompel sy vyande. Ek het vir lank stilgebly en niks gedoen nie. Maar Ek gaan nou iets doen. Ek sal skree soos ’n vrou wat ’n baba in die wêreld bring. Ek sal hyg, Ek sal hard asemhaal. Ek sal droogte op die berge en heuwels laat kom. Ek sal die plante laat doodgaan wat daarop groei. Ek sal die riviere in stilstaande poele verander. Die riete in die vleie sal doodgaan. Ek sal die blinde Israel op ’n pad laat loop wat hy glad nie ken nie. Hy sal op paaie loop waarvan hy glad nie eers geweet het nie. Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie. Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom. Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee. Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here? Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks. Die Here het uitdruklik gesê hoe belangrik sy wet is. Hy wil graag hê dat daar geregtigheid onder mense moet wees. Maar sy volk is beroof en kaal gesteel. Hulle sit almal in gate en in tronke opgesluit. Toe daar op hulle toegeslaan is, was daar niemand om hulle te red nie. Toe hulle gevange geneem is, kon niemand dit keer nie. Wie van julle het werklik gehoor wat hier gebeur het? Wie het fyn genoeg geluister om te verstaan wat dit vir die toekoms beteken? Wie het Jakob uitgelewer aan die mense wat hom beroof het? Was dit nie die Here self wat dit gedoen het nie? Ons het teen Hom oortree. Israel wou nie leef soos die Here van hulle gevra het nie. Hulle wou nie luister na wat die Here gesê het hulle moet doen nie. Die Here het sy woede soos vuur teen hulle laat vlam vat. Hy het hulle in die oorlog laat beland. Selfs toe dit rondom hulle gebrand het, het hulle dit nie verstaan nie. Hulle het nie besef hoe ernstig dit was nie. Die Here het jou gemaak, Jakob. Hy het jou ’n volk gemaak, Israel. Hy sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie. Die vlamme sal jou nie brand nie. Ek is mos die Here jou God wat vir jou sorg. Die hoë God van Israel red jou. Ek het Egipte ter wille van jou opgeoffer. Ek het Kus en Seba vir jou geruil en hulle gestraf. Ek het ander mense in jou plek laat doodgaan. Ek het ander volke laat doodgaan sodat jy kan bly lewe. Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou. Ek sal jou nageslag uit die ooste uit laat terugkom. Ek sal hulle bymekaarmaak uit die weste uit. Ek sal vir die noorde beveel om hulle terug te gee. Ek sal die suide belet om hulle terug te hou. Laat my seuns wat ver is, terugkom! Laat my dogters terugkom van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle weggevoer is. Laat almal terugkom wat aan My behoort. Laat elkeen wat Ek gemaak het, terugkom om My te eer. Laat almal wat Ek geskep het en Myne gemaak het, terugkom. Laat die volk hiernatoe kom met sy oë wat nie wil sien nie. Laat hulle kom met hulle ore wat nie wil hoor nie. Laat al die nasies bymekaarkom. Maak die volke bymekaar vir ’n hofsitting. Watter god onder hulle kan dinge voorspel? Watter een kan vooraf sê wat gaan gebeur? Laat hulle hulle getuies bring wat dit kan bewys. Laat die een wat hulle verhoor, besluit of hulle die waarheid praat. Julle is my getuies, Israel, sê die Here. Julle behoort aan My. Ek het julle vir My gekies sodat julle My kan ken. Ek het julle gekies dat julle in My kan glo en kan verstaan dat net Ek God is. Daar was nie ’n god voor My nie. Na My sal daar ook geen ander god wees nie. Ek, Ek self is die Here. Daar is niemand anders wat julle kan red behalwe net Ek nie. Ek het voor die tyd gesê Ek sal julle red. Ek het dit gedoen. Ek het seker gemaak dat julle weet dat dit Ek was wat julle gered het. Daar was nie ’n ander god tussen julle wat dit kon doen nie. Julle is my getuies, sê die Here, net Ek is God. Nou en vir altyd is Ek God. Niks kan by My weggevat word nie. Wat Ek doen, kan niemand verander nie. Die hoë God van Israel wat jou red, die Here, het gesê: Ek stuur iemand om teen Babel te gaan veg, sodat julle gered kan word. Ek laat die Galdeërs wat daar woon, vlug. Hulle vlug in die skepe waarmee hulle so gespog het. Ek is die Here, jou hoë God. Ek het Israel gemaak. Ek is julle Koning. Dit is die Here wat hier praat. Ek het destyds ’n pad deur die see gemaak. Ek het ’n deurgang deur die bruisende water gemaak. Ek het perde en oorlogswaens, ’n hele leërmag, vernietig. Hulle het tot ’n val gekom. Hulle sal nooit weer daar opstaan nie. Dit is verby met hulle soos ’n lamp wat doodgeblaas is. Die Here sê: Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur. Dit het alreeds begin. Kom julle dit nie agter nie? Ek maak deur die woestyn ’n pad vir my volk om terug te kom. Ek laat riviere deur verlate plekke loop. Die jakkalse en die volstruise, al die wilde diere in die veld sal daarvoor vir My kom dankie sê. Ek het water in die woestyn gegee vir hulle om te drink. Ek het riviere deur eensame gedeeltes laat loop sodat die volk wat Ek vir My gekies het, daaruit kan drink. Hulle is die volk wat Ek vir My bymekaargemaak het om My te loof en te prys. Maar jy het nooit tot My gebid nie, Jakob. Jy was nie bereid om moeite vir My te doen nie, Israel. Jy het nie vee gebring om vir My te slag nie. Jy het nie offers gebring om My te kom vereer nie. Ek het nie daarop aangedring dat jy offers sal kom slag om saam met My te eet nie. Ek het jou nie forseer om wierookoffers vir My te bring nie. Jy het nooit lekkerruikoffers vir My gekoop of My bly gemaak met die vet van jou diere wat jy vir My geslag het nie. Om die waarheid te sê, jy het al jou verkeerde dinge op My kom aflaai. Jy het My moeg gemaak met jou oortredings. Maar Ek is die Een wat jou oortredings afskryf omdat dit is soos Ek is. Ek dink nie verder aan alles wat jy verkeerd gedoen het nie. Kom ons gaan saam na die hof toe om ons saak daar te laat verhoor. Kom stel jou saak dat ons kan sien of jy reg is. Jou voorouers het oortree. Jou leiers was in opstand teen My. Ek het daarom dié wat by die tempel werk, van hulle werk af weggevat. Ek het Jakob laat uitroei. Ek het Israel iemand gemaak om oor te spot. Jakob behoort aan My. Ek het Israel gekies om Myne te wees. Luister na wat Ek vir jou sê, Jakob-Israel. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag. Hulle sal wees soos gras wat uitloop, soos wilgerbome wat langs die water staan. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here.” Die ander sal sê: “Ek is ’n afstammeling van Jakob.” Nog ’n ander een sal op sy hand skryf: “Die Here s’n.” En ’n ander een sal homself ’n Israeliet noem. Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie. Dié wat afgodsbeelde maak, is niks werd nie. Hulle gunstelinggode bring vir hulle geen voordeel nie. Dié wat hulle gode verdedig, is blind en onnosel. Hulle gaan nog baie skaam kry. Wie is dan so dom om ’n afgodsbeeld te maak wat vir jou niks bring nie? Elkeen wat afgodsbeelde maak, gaan maar sleg daarvan afkom. Dit is goed wat deur mense gemaak is. As hulle bymekaarkom en voor die beelde kom staan, gaan hulle geskok wees en skaam kry vir wat hulle doen. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.” Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!” Hulle verstaan glad nie wat hulle besig is om te doen nie. Hulle oë is bottoe. Hulle sien en verstaan glad nie wat besig is om met hulle te gebeur nie. Dit kom nie eens by hulle op om ’n oomblik na te dink en vir hulleself te sê nie: “Ek het dan met die een helfte vuur gemaak om brood te bak en vleis gaar te maak, hoe kan ek nou die ander helfte gebruik om ’n afgod van te maak? Ek bid mos nou tot ’n stuk hout!” Iemand wat hom ophou met hout wat verbrand het, kan nie meer mooi dink nie. Hy kan nie meer op ’n afstand gaan staan en vir homself vra: “Is ek nie besig om myself te bedrieg as ek so maak nie?” Jakob, jy moet ’n bietjie hieroor gaan nadink. Israel, jy moet onthou dat jy aan My behoort. Jy moet My dien. Ek sal jou nooit in die steek laat nie, Israel. Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos. Die lug daar bo moet uit volle bors sing oor wat die Here gedoen het. Selfs in die laagste plekke onder op die aarde moet daar hardop gesing word. Die berge met die bosse en bome daarop moet juig. Die Here het Jakob vrygemaak. Die Here het vir Israel gewys hoe groot Hy is. Die Here wat jou vrygemaak het, wat jou van kleins af sy volk gemaak het, sê: Ek is die Here wat alles gemaak het. Ek het die blou lug daar bo oopgespan. Ek laat die aarde uitstrek na alle kante toe. Ek het dit gemaak sonder dat iemand My gehelp het. Ek wys hoe verkeerd mense is wat die toekoms voorspel. Ek maak die fortuinvertellers belaglik. Ek wys vir dié wat dink dat hulle verstandig is hoe dwaas hulle eintlik is. Ek laat dié wat dink dat hulle slim is, insien hoe dom hulle werklik is. Ek laat die dinge gebeur wat my dienaar vir julle sê nog gaan gebeur. Ek laat dit waar word wat my boodskapper vir julle gesê het. Ek sê vir julle dat daar weer mense in Jerusalem sal bly. Die dorpe in Juda sal herbou word. Ek sal die bouvalle van Jerusalem weer opbou. Ek beveel die see om droog te word en die riviere om te gaan staan. Ek beveel Kores om koning te wees. Hy moet alles laat gebeur wat Ek wil hê. Hy moet opdrag gee dat Jerusalem weer opgebou word en dat die tempel se fondament weer gelê moet word. Die Here laat Kores regeer. Hy maak hom sterk. Hy gee vir hom die krag om ander nasies voor hom te laat buig. Hy laat konings hulle wapens voor hom neerlê. Geen stad kan hom uit hou nie. Hy breek hekke oop om stede binne te val. Die Here sê vir hom: Ek gaan voor jou uit. Ek maak jou pad gelyk. Ek breek koperdeure vir jou oop. Ek kap ysterslotte vir jou stukkend. Ek gee vir jou die skatte wat in donker plekke bewaar word, die rykdom wat weggesteek word. Ek doen dit vir jou sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, die God van Israel is wat jou geroep het om te regeer. Ek het spesifiek vir jou geroep. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien, ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee, al het jy My nie geken nie. Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk, al ken jy My glad nie. Ek wil hê dat die hele wêreld moet weet dat daar niemand anders is behalwe Ek nie. Ek is die Here en daar is niemand anders naas My nie. Dit is Ek wat die lig gemaak het, maar ook die donker. Vrede, maar Ek bring ook teëspoed. Ek is die Here. Ek het al hierdie dinge gemaak. Ek sorg dat regverdigheid van bo uit die wolke neergiet soos reën. Ek laat die aarde geregtigheid indrink. Ek laat redding en geregtigheid soos ’n plant opskiet. Ek is die Here wat dit alles laat gebeur. Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ’n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: “Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?” Daar wag teëspoed vir iemand wat sy pa verwyt omdat hy hom gemaak het. Daar wag moeilikheid vir iemand wat vir sy ma vra hoekom sy hom in die wêreld gebring het. Die Here, die hoë God wat vir Israel ’n volk gemaak het, sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen? Dit is Ek wat die aarde gemaak het. Ek het die mense wat op die aarde woon, gemaak. Ek het met my hande die hemelruim daar bo oopgespan. Alles wat daarin is, luister wat Ek hulle beveel. Ek het Kores na vore laat kom om geregtigheid te bring. Ek maak alles wat hy doen voorspoedig. Hy sal my stad Jerusalem herbou. Hy sal uit sy eie almal wat weggevoer is, laat teruggaan. Hy sal dit doen sonder dat hy daarvoor betaal word of omkoopgeld daarvoor kry. Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer. Die Here sê: Jy sal alles wat Egipte het, in die hande kry. Die artikels waarmee Kus handel dryf, sal na jou toe kom. Die lang mense van Seba sal jou slawe word. Jy sal hulle met kettings boei en hulle wegvoer om vir jou te werk. Hulle sal voor jou buig en hulle sal erken: “Werklik, God is by julle. Daar is nie ’n ander God nie.” Al is U nie ’n God wat ’n mens kan sien nie, is U Israel se God wat sy mense red. Dié wat afgode maak, kom in die verleentheid. Hulle bring skande oor hulleself. Die Here bevry Israel. Hulle sal vir altyd vry wees. Hulle sal in der ewigheid nooit skaam kry of verleë staan nie. Die Here het die lug gemaak. Net Hy is God. Hy het die aarde gemaak. Hy het dit nie gemaak dat dit moet leeg staan nie, maar dat mense daarop kan woon. Hy sê: Ek is die Here. Daar is nie nog ’n ander God ook nie. Ek het nie iets in die geheim gesê nie. Ek het nie daar gepraat waar dit donker en eenkant is nie. Ek het nie vir Jakob se nageslag gesê om na My te gaan soek waar dit eensaam en verlate is nie. Wat Ek, die Here, sê, is reg en regverdig. Laat almal uit die ander nasies wat moes vlug, nou bymekaarkom. Laat hulle hier na My toe kom. Die mense wat beelde ronddra wat van hout gemaak is, is baie dom. Hulle aanbid gode wat niemand kan bevry nie. Sit koppe bymekaar en beplan hoe julle julle saak gaan bewys. Wie het lankal al gesê wat nou gaan gebeur? Was dit nie maar Ek, die Here, nie? Daar is mos nie ’n ander God behalwe Ek nie. Ek is die enigste Een wat regverdig is en wat mense red. Niemand anders kan dieselfde vir julle doen nie. Laat almal oor die hele wêreld na My toe kom dat Ek julle kan bevry. Daar is mos nie ’n ander God wat dit vir julle kan doen nie. Ek maak ’n belofte vir julle wat vir altyd bly: elke mens sal nog voor My kom buig en bely dat Ek die Here is. Hulle sal erken dat hulle net by My regverdigheid en sterkte kan kry. Almal wat teen My in opstand was, sal skaam kry. Die Here sal die nageslag van Israel bevry. Hulle sal lofliedere vir Hom sing. Babel se afgod Bel het inmekaargesak. Nebo het geknak. Hulle beelde het ’n swaar vrag geword op die rûe van die diere wat hulle moes dra. Hulle gewig druk die pakdiere wat hulle dra, in die grond in. Die gode het ineengestort. Hulle kan die vrag nie langer dra nie. Hulle is saam met die mense wat hulle aanbid as gevangenes weggevoer. Almal van Jakob, almal wat van Israel oor is, moet na My luister. Vandat jy gebore is, het Ek vir jou gesorg. Toe jy ’n babatjie was, het Ek jou in my arms rondgedra. Selfs al word jy oud, sal Ek nog daar wees. Ek sal vir jou sorg tot jy grys is. Ek het julle gemaak. Ek sal vir julle sorg. Ek sal julle dra en julle versorg. Met wie kan julle My vergelyk? Met watter ander persoon kan julle My gelykstel? Mense wat geld het, huur ’n man wat met goud werk. Hy maak vir hulle ’n beeld van ’n afgod. Hulle buig dan voor die beeld en aanbid die beeld. Hulle tel die beeld op hulle skouers en dra dit rond. As hulle dit op ’n plek neersit, staan dit net daar. Dit kan nie roer nie. Selfs al skreeu jy vir die beeld kan hy jou nie antwoord nie. Uit jou probleme kan hy jou nie uithelp nie. Dink ’n bietjie hieroor na en besluit vir julleself. Julle wat so in opstand is teen My, moet julleself ondersoek. Laat julle gedagtes teruggaan na alles wat lankal al gebeur het. Ek is tog mos die enigste God. Daar is nie nog ’n ander een buiten My nie. Net Ek kan sê wat uiteindelik gaan gebeur. Ek kan voor die tyd al praat oor die dinge wat selfs nog nie eens gebeur het nie. Wat Ek besluit het, staan vas. Wat Ek wil laat gebeur, gebeur uiteindelik. Ek roep ’n man uit die ooste. Soos ’n roofvoël kom hy van ’n ver plek aangevlieg. Ek laat hom doen wat Ek besluit het. Ek laat dit gebeur soos Ek dit beplan het. Luister tog na My, julle met julle hardkoppigheid en julle onregverdigheid. Die bevryding is baie naby. Ek sal nie lank wag voor Ek julle verlos nie. Ek sal Sion red. Ek sal vir Israel wys hoe wonderlik Ek is. Kom sit op die grond, Babel. Klim van jou troon af, stad van die Galdeërs. Jy gaan nie meer die pragtige stad wees waarheen almal graag wil kom nie. Gaan maal saam met die slawe meel op die maalklip. Vat die sluier voor jou gesig weg. Lig jou rok tot bo jou knieë op sodat jy deur die riviere kan gaan. Lig dit hoog genoeg op sodat almal jou lyf kan sien en vir jou kan lag. Ek gaan jou straf. Ek sal geen mens oorsien nie. Die God wat ons bevry se Naam is die Here van die gevegsmagte. Hy is die hoë God van Israel. Gaan sit tussen die grafte, stad van die Galdeërs. Jy sal nie meer leier van die volke genoem word nie. Ek was kwaad vir my volk. Ek wou hulle nie meer hê nie. Ek het hulle vir jou gegee om met hulle te maak soos jy wil. Jy het hulle nie gespaar nie. Jy het selfs die ou mense soos slawe laat werk. Jy het gedink dat jy vir altyd die leier van die volke sal wees. Jy het nie gedink wat die gevolge van jou dade gaan wees nie. Luister dan nou ’n bietjie hier, julle wat so gemaklik leef sonder enige bekommernis. Julle dink niemand anders kan naby julle kom nie. Julle sê: “Ek sal nooit van iemand anders afhanklik wees nie. Ek sal nie soos ’n vrou word wat nie ’n man of kinders het nie.” En tog sal dit alles binne een enkele dag met jou gebeur. Jy gaan jou inwoners verloor en soos ’n weduwee en weeskinders word wat niemand het wat vir hulle kan sorg nie. Ten spyte van al jou toorkunsies en jou toorwoorde waarmee jy dinge wil besweer, gaan dit met jou gebeur. Jy het staatgemaak op die verkeerde dinge wat jy doen. Jy het vir jouself gesê: “Niemand sien tog wat ek doen nie.” Jou slimmigheid en jou kennis van die verkeerde dinge het jou die spoor byster laat raak. Jy het ewe verwaand jouself wysgemaak dat niemand anders so goed is soos jy nie. Daar gaan teëspoed oor jou kom. Jy sal dit nie kan wegtoor nie. Ongeluk sal op jou toesak. Jy sal dit met niks kan keer nie. ’n Ramp sal jou uit die bloute tref. Jy sal nie weet hoe om dit te hanteer nie. Gaan maar aan met jou toorkunsies en die beswerings waarmee jy jou al van jou kinderdae af besig hou. Miskien kry jy nog iets daarmee reg. Miskien skrik jou vyande daarvoor. Jy hou jou graag op met voorspellings. Jy het mense wat die hemelruim bestudeer. Hulle neem die sterre waar. Hulle voorspel elke maand vir jou wat met jou gaan gebeur. Laat hulle jou nou bevry. Sowaar, hulle is soos droë gras. Die vuur brand hulle weg. Hulle kan nie eens hulleself van die vlamme red nie. Hierdie is nie ’n vuur om mee te speel nie. Die mense met wie jy jou ophou, met wie jy van jongs af te doen het, sal elkeen sy eie koers vat. Nie een van hulle gaan jou uit jou probleme uithelp nie. Hoor ’n bietjie hier, nageslag van Jakob. Julle word Israel genoem. Julle is die nageslag van Juda. Julle maak belangrike verklarings in die Naam van die Here. Julle lê ’n eed af in die hof in die Naam van die God van Israel. Maar julle is vals en oneerlik. Julle spog daarmee dat julle in God se stad Jerusalem bly. Julle sê graag die God van Israel staan agter julle. Julle sê die Here wat die hemelse magte aanvoer, is aan julle kant. Ek het vantevore al vir julle gesê wat gaan gebeur. Ek het julle dit uit my eie mond laat hoor. Ek het onverwags gedoen wat Ek gesê het. Ek weet hoe moeilik dit is om met jou klaar te kom. Ek weet dat jy onbuigsaam en hardkoppig is. Ek het voor die tyd al vir jou gesê wat gaan gebeur. Voor iets nog gebeur het, het Ek gesorg dat jy daarvan weet. Jy kan nie sê: “Dit is my eie god wat hierdie dinge laat gebeur het” nie. Jy kan ook nie sê: “My afgodsbeeld het besluit dit moet gebeur” nie. Jy het mos gehoor wat Ek gesê het gaan gebeur. Jy het gesien hoe dit gebeur het. Kan jy dit ontken? Ek gaan nou vir jou van nuwe dinge vertel wat Ek tot dusver nog stil gehou het. Jy het nog nie daarvan gehoor nie. Dit is nuwe dinge wat nog nie vantevore gebeur het nie. Jy het voor vandag nog glad nie daarvan geweet nie. Wanneer dit gebeur het, sal jy nie kan sê: “Maar ek het dit alreeds voorheen geweet” nie. Jy het beslis nog nie hiervan gehoor nie. Jy weet daar niks van nie. Julle kon dit nie voorheen al gehoor het nie. Ek weet mos hoe onbetroubaar jy is. Van kleins af was jy eiesinnig. Om my Naam skoon te hou sal Ek sorg dat Ek nie vir jou kwaad word nie. Om my eer te beskerm sal Ek jou nie verwoes nie. Ek het jou gesmelt, maar nie soos silwer gesmelt word nie. Ek het jou in die oond van swaarkry gesmelt. Ek het dit gedoen om my Naam in ere te hou. Ek laat nie my eer aantas nie. Ek staan nie my eer aan afgode af nie. Jakob, jy moet na My luister. Ek het Israel geroep om aan My te behoort. Ek is die Here. Ek is die eerste en die belangrikste. Ek het met my eie hand die fondamente van die aarde gelê. Ek het met my regterhand die hemelkoepel gespan. As Ek die mense roep om My te kom sien, kom staan hulle op aandag voor My. Kom almal hier bymekaar. Kom luister wat Ek sê. Was daar een van die gode wat vir julle gesê het dat Ek ’n man gaan kies wat Babel gaan aanval? Hy sal met die Galdeërs maak soos Ek besluit het. Ek self het besluit om hom te roep. Ek stuur hom na Babel toe. Hy sal suksesvol wees met wat hy gaan doen. Kom staan hier naby My. Hoor wat Ek sê. Van die begin af sê Ek dit openlik. Wanneer dit gebeur, sal Ek by wees. Die Here my God stuur my. Hy gee my sy Gees om saam met my te gaan. Die hoë God van Israel, die Here wat jou bevry, sê vir jou: Ek is die Here. Ek is jou God. Ek leer jou wat vir jou goed is. Ek laat jou die regte pad loop. As jy tog maar die rigting gevolg het wat Ek vir jou gewys het. Jou lewe sou dan so rustig gewees het soos ’n rivier wat sterk vloei. Jy sou so betroubaar gewees het soos die branders van die see wat onophoudelik breek. Jou afstammelinge sou so baie gewees het soos die sandkorrels op die strand. Jou naam sou nooit van die aarde af verdwyn het nie. Trek weg van Babel af. Vlug voor die Galdeërs. Skreeu van vreugde. Laat dit weerklink tot by die eindes van die aarde. Juig dit uit: “Die Here het die kinders van Jakob bevry!” Hulle het nie dors geword toe Hy hulle deur ’n droë landstreek laat trek het nie. Hy het vir hulle water uit ’n rots laat kom. Hy het die rots laat oopbreek en daar het water daaruit gevloei. Maar vir die goddelose is daar geen vrede nie, sê die Here. Die ander lande moet na my luister. Die lande wat ver weg is, moet fyn luister wat ek sê. Die Here het my geroep voordat ek gebore is. Hy het my alreeds ’n naam gegee voordat ek in die wêreld gekom het. Hy het my woorde so skerp soos ’n swaard gemaak. Hy hou sy hand oor my om my te beskerm. Hy het my soos ’n skerp pyl gemaak wat Hy reghou in sy pylkoker om mee te skiet. Hy het vir my gesê: Jy werk vir My. Jy is Israel. Deur jou wys Ek hoe groot Ek is. Maar ek het gesê: “Ek het my verniet ingespan. Ek het my energie gemors op dinge wat geen voordeel het nie.” Nogtans glo ek die Here sal dit met my laat reg gaan. Hy sal my werk beloon. Die Here het my voor my geboorte al gekies om vir Hom te werk. Hy het my bestem om Jakob na Hom toe terug te bring. Israel moet bymekaargemaak word. Ek is belangrik vir die Here. Hy gee my die krag om te doen wat Hy van my vra. Hy het vir my gesê: Jy moet meer doen as om net die nageslag van Jakob bymekaar te maak. Daar is meer om te doen as om net dié wat nog oor is, terug te lei hierheen. Jy moet boonop ook my lig wees vir die nasies. Jy moet my redding uitdra na die uithoeke van die aarde. Die Here red Israel. Hy is hulle groot God. Hy praat met die een van wie niemand iets dink nie. Die nasies dink hy is onbelangrik. Hy moet konings se vuilwerk doen. Die Here sê vir hom: Konings sal sien wat Ek vir jou doen. Hulle sal uit eerbied vir jou opstaan. Leiers sal voor jou buig ter wille van die Here wat sy woord hou. Hulle sal jou vereer ter wille van die hoë God van Israel wat jou gekies het om aan Hom te behoort. Die Here sê: Wanneer Ek dink dit is die regte tyd, sal Ek jou gebed verhoor. Ek sal jou bystaan op die dag dat jy gered word. Ek sal jou beskerm. Ek sal deur jou ’n ooreenkoms met die volk maak dat Ek die land sal herstel. Hulle sal hulle grond terugkry wat so lank verwaarloos gelê het. Jy sal vir dié wat in tronke sit, kan sê: “Julle word vrygelaat.” Vir dié wat in donker selle opgesluit is, sal jy kan sê: “Julle gaan uitkom.” Wanneer hulle terugkom, sal Ek hulle langs die pad versorg soos skape wat wei. Selfs op die kaal bulte sal daar vir hulle plek wees om gras te eet. Hulle sal nie honger of dors word nie. Die skroeiende wind en die warm son sal hulle nie brand nie. Die Here wat hulle jammer gekry het, sal hulle lei en hulle by water laat uitkom. Ek sal ’n pad maak deur die berge. Ek sal ’n bergpas maak om oor die berge te kom. My volk sal van al die ver plekke af terugkom. Sommige sal uit die noorde kom, ander uit die weste en nog ander uit Egipte. Die lug daar bo moet juig. Die aarde hier onder moet jubel. Die berge moet sing van vreugde. Die Here het sy volk nuwe moed gegee. Hy was jammer vir hulle omdat hulle so swaarkry. Die mense van Jerusalem het gesê: “Die Here het ons in die steek gelaat. Ons God het van ons vergeet.” Kan ’n vrou van haar babatjie vergeet? Kan sy die kind wat sy in die wêreld gebring het, net so laat staan? Selfs al sou so iets gebeur, sal Ek jou nooit vergeet nie. Ek het jou naam op my hand geskryf. Ek dink heeltyd aan jou mure wat so verwoes is. Dié wat jou mure sal herbou, is vinnig op pad na jou toe. Dié wat jou verwoes het, sal van jou af padgee. Maak oop jou oë en kyk wat rondom jou gebeur. Al jou mense kom bymekaar om na jou toe terug te kom. So seker as Ek lewe, sê die Here, jy sal so bly wees wanneer hulle terugkom soos ’n vrou wat plesier het in haar juwele. Jy sal so tevrede wees soos ’n bruid met haar versiersels. Op die oomblik is die hele stad vol bouvalle en puinhope. Jy is ’n land wat verwoes is. Maar as jou mense terugkom, sal daar nie genoeg plek wees vir almal om te woon nie. Daar sal niks meer te sien wees van die vyand wat jou vernietig het nie. Die kinders wat gedurende die tyd van die wegvoering in ander lande gebore is, sal dan by jou kom kla: “Hier is nie genoeg plek vir ons om te bly nie. Gee vir ons meer plek om te bly.” Dan sal jy jou afvra: “Waar kom al hierdie kinders vandaan? Ek het dan my kinders verloor en alleen agtergebly toe hulle na ’n ander land weggevat is. Van waar af kom hierdie kinders? Wie het hulle grootgemaak?” Die Here sê: Ek sal my hand uitsteek na die nasies. Ek sal vir hulle ’n teken gee. Hulle sal julle seuns in hulle arms terugbring. Hulle sal julle dogters op hulle skouers dra. Konings sal julle versorg. Koninginne sal na julle kinders kyk. Hulle sal oor hulle voete val om te doen wat julle wil hê. Julle sal dan weet dat Ek die Here is. Dié wat op My vertrou, sal nie teleurgestel word nie. Jy vra: “Kan die buit wat ’n soldaat in die oorlog gemaak het, sommer van hom af weggevat word? Laat ’n magtige heerser sy gevangenes sommer vry?” Die Here sê: Dit is presies wat gaan gebeur. ’n Persoon wat gevange geneem is, kan wel weer vrygelaat word. Wat ’n sterk man buitgemaak het, kan wel weer by hom afgeneem word. Ek sal self teen julle vyande veg. Ek sal self julle kinders bevry. Jou vyande sal onder mekaar veg. Hulle sal dronk word van die bloed wat vloei. Almal sal dan weet dat dit Ek, die Here, is wat julle bevry en julle red. Ek is die sterk God van Jakob. Die Here vra: Het julle ma ’n skeibrief wat kan bewys dat dit Ek is wat haar weggestuur het? Het Ek iemand geld geskuld dat Ek julle aan hom moes verkoop om die skuld te betaal? Dit is oor julle eie oortredings dat julle aan ’n ander uitverkoop is. Dit is oor julle sondes dat julle ma weggestuur is. Hoekom was daar niemand om My te ontmoet toe Ek na julle toe gekom het nie? Ek het na julle geroep, maar niemand het My geantwoord nie. Is Ek dan nie sterk genoeg om julle te bevry nie? Het Ek nie genoeg krag om julle te red nie? As Ek met die see raas, droog dit net daar op. Ek kan van ’n rivier ’n droë sandbedding maak. Die visse vrek sonder water en lê en stink. Ek kan die lug so donker maak asof dit begrafnisklere aanhet. Die Here het vir my die vermoë gegee om mense wat neerslagtig is, weer moed in te praat. Elke oggend spits ek my ore om verder by die Here te leer. Die Here het my bereid gemaak om na Hom te luister. Ek is nie opstandig teen Hom nie. Ek is ook nie ver van die Here af nie. Ek het my rug gehou dat hulle my maar kan slaan. Ek het my gesig gehou dat hulle maar my baard kan probeer uitpluk. Ek het nie my hande voor my gesig gehou toe hulle my in die gesig gespoeg het om my te beledig nie. Omdat die Here my help, sal ek nie verneder word nie. Ek byt op my tande, want ek weet dat ek nie in die skande sal kom nie. Die Here is aan my kant. Hy bewys ek is reg. Wie wil my hof toe vat? Hy moet maar kom dat ons saam in die hof kan gaan staan. Wie wil regter speel oor my? Laat hy hier na my toe kom. Die Here help my. Wie sal dit waag om te sê dat ek skuldig is? Hulle sal almal verwoes word soos klere wat die motte stukkend vreet. Dié wat respek het vir die Here, luister wat sy dienaar sê. Dié wat in onsekerheid is en geen duidelikheid het oor sy lewe nie, moet op die Here vertrou. Hy moet op God staatmaak. Elkeen van julle wat net op homself staatmaak en by sy eie vuur wil staan, sal daarvan brand. Ek sal julle pyn laat voel wat nooit ophou nie. Julle wat probeer om reg te doen moet na My luister. Julle wat na die wil van die Here soek, moet luister. Onthou uit watter soort rots julle gekap is. Onthou uit watter steengroef julle kom. Dink aan julle stamvader Abraham. Roep Sara, julle stammoeder, in herinnering. Ek het Abraham geroep toe hy nog nie kinders gehad het nie. Ek het hom voorspoedig gemaak. Hy het ’n groot nageslag gekry. Die Here is jammer vir Sion. Hy gaan die puinhope van Jerusalem herstel. Hy gaan Juda se woestyn soos die tuin van Eden laat word. Die Here gaan die droë dele in tuine verander. Daar sal vreugde en vrolikheid in die stad wees. Hulle sal sing en vir die Here dankie sê. My volk, julle moet na My luister. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal die nasies leer hoe hulle moet lewe. Ek sal vir hulle met my reëls die koers aanwys. Binnekort sal Ek hulle verlos. Ek is Koning oor die nasies. Die lande oorsee wag vir My. Hulle is gretig dat Ek oor hulle sal regeer. Kyk op in die lug. Kyk af na die grond. Die lug sal soos rook verdwyn. Die aarde sal word soos ou klere wat uitmekaarskeur. Dié wat op die aarde woon, sal doodgaan soos muskiete. Die bevryding wat Ek bring, sal vir altyd hou. My redding het geen einde nie. Julle wat weet wat reg is, moet na My luister. Julle is mos ’n volk wat die wil van die Here met julle hele hart soek. Julle moenie bang wees vir mense wat julle spot nie. Julle moenie skrik as hulle julle slegsê nie. Hulle sal wees soos klere waaraan die motte vreet. Hulle is soos materiaal waarin daar vismotte is. Hulle hou nie vir altyd nie. Maar wat reg is, sal vir altyd hou. Wanneer Ek julle red, hou dit geslag op geslag. Staan tog op, Here. Gryp in met u krag. Veg weer soos U in die ou tyd lank gelede geveg het. Dit was mos U wat die seemonster Rahab verslaan het. U het die seemonster vernietig. Dit was U wat die water laat wegdroog het. U het onder op die bodem van die see ’n pad gemaak sodat dié wat U bevry het, deur die see kon gaan. Dié wat die Here vrygemaak het, sal weer terugkom na Jerusalem. Hulle sal baie bly wees as hulle in Sion aankom. Die gesigte sal straal van vreugde. Hulle sal vol blydskap wees. Hulle hartseer en swaarkry sal verby wees. Ek self praat jou moed in. Hoekom is jy dan bang vir ’n mens wat ook maar kan doodgaan? ’n Mens is mos maar soos gras wat ook kan verbygaan. Jy vergeet dat die Here jou gemaak het. Hy het die lug daar bo oopgespan. Hy het die grond hier onder vasgemaak. Nogtans is jy die hele dag lank bang vir jou onderdrukker wat so wreed is om alles te verwoes. Hy kan jou niks meer maak nie. Binnekort sal almal wat in tronke aangehou word, weer vrygelaat word. Hulle sal nie in die tronk doodgaan nie. Hulle sal nie langer honger ly nie. Ek is die Here jou God. Ek laat storms op die see kom. Ek laat die branders bruis. My Naam is Here van die hemelse leërmag. Ek het die lug oor die aarde gespan. Ek het die aarde stewig op sy plek neergesit. Ek het vir Jerusalem se inwoners gesê: “Julle is my volk.” Ek sê vir jou wat jy moet sê. Ek beskerm jou. Skrik wakker, Jerusalem. Staan op! Jy het die beker van die Here se woede leeggedrink. Dit het jou laat steier. Van almal wat jy in die wêreld gebring het, is daar nie ’n enkele een wat vir jou die pad kan wys nie. Van almal wat jy grootgemaak het, is daar nie een wat jou kan ondersteun nie. Wie sal sê dat hulle meegevoel het met wat met jou gebeur het? Jou land is verwoes. Die oorlog het hongersnood vir jou gebring. Wie kan jou troos? Jou seuns lê magteloos op die hoeke van die strate. Hulle is soos wilde diere wat in ’n strik gevang is. Die Here het hulle met sy woede getref. Hy het hulle gestraf. Hoor ’n bietjie hier, julle wat so swaargekry het. Julle loop en steier, maar dit is nie omdat julle dronk is nie. Die Here jou God sal sy volk se lot verander. Hy sê: Ek gaan die beker wat jou so laat steier het, by jou wegvat. Jy hoef nie langer die beker van my woede te drink nie. Ek gaan daardie beker gee vir hulle wat julle verdruk het. Hulle sal dit drink. Hulle het vir julle gesê: “Gaan lê op die grond dat ons oor julle kan loop.” Jy moes op die grond gaan lê dat hulle op jou kon trap en bo-oor jou kon loop asof jy ’n pad is. Word wakker. Staan op, Sion. Berei jou voor. Maak jouself mooi, Jerusalem. Jy is die stad wat aan die Here behoort. Heidene wat nie aan die Here behoort nie, mag nooit weer in jou kom nie. Skud die stof van jou af. Staan op uit die grond. Jy is nie meer ’n gevangene nie. Haal af die boeie om jou nek. Jy is nie meer in die tronk nie, Sion. Die Here sê: Toe julle weggevoer is, het Ek julle slawe laat word. Julle is gevange geneem en nie gekoop nie. Wanneer julle bevry word, sal dit ook nie wees omdat daar met geld vir julle betaal is nie. Die Here sê: My volk het vroeër Egipte toe gegaan en tydelik daar gaan bly. Later was Assirië oor hulle baas. En wat gebeur nou? vra die Here. My volk is sommer net so weggevoer. Dié wat oor hulle regeer, spot met hulle en maak my Naam aanhoudend sleg. Ek sal my volk leer om my Naam te herken. As Ek die dag met hulle praat, sal hulle dadelik weet dit is die Here wat met hulle praat. Dit sal wonderlik wees wanneer iemand van die berge af die goeie nuus uitroep. Hy sal die wonderlike nuus bring van vrede en van bevryding. Hy sal vir Sion sê: “Jou God regeer!” Die wagte wat op die mure van die stad waghou, sal hardop uitroep. Hulle sal almal saam van vreugde skreeu. Hulle sal voor hulle oë sien hoe die Here terugkom na Sion toe. Die murasies van Jerusalem sal saam skreeu en met blydskap juig. Die Here het sy volk jammer gekry. Die Here maak Jerusalem weer vry. Die Here wys vir al die nasies hoe geweldig sterk Hy is. Tot in die verste uithoeke van die aarde sien hulle hoe God ons uitred. Gee pad uit Babel uit. Kom weg daar. Moenie aan iets vat wat vir die Here onaanvaarbaar is nie. Dié wat die tempelgereedskap dra, moet hulle afsonder vir die Here. Hulle moet wegkom uit Babel uit. Julle hoef nie halsoorkop pad te gee nie. Julle hoef ook nie soos destyds uit Egipte te vlug nie. Die Here self sal voor julle uitgaan. Hy sal julle van agter af beskerm. Die man wat Ek stuur om julle te bevry, sal dit regkry. Hy sal beroemd word. Baie was ontsteld toe hulle hom sien. Hy was aaklig vermink. Hy het nie meer soos ’n mens gelyk nie. Nogtans gaan baie nasies verstom staan oor wat hy kan doen. Konings gaan sprakeloos wees oor hom. Hulle gaan iets sien waarvan niemand hulle nog ooit vertel het nie. Hulle gaan iets beleef waarvan hulle selfs nog nie eens gehoor het nie. Wie het dit geglo toe hulle dit vir ons vertel het? Wie het raakgesien dat dit die Here is wat dit deur sy krag doen? Sy dienaar het onverwags na vore begin kom. Hy was soos ’n boomwortel wat dit regkry om in droë grond te groei. Daar was niks aan hom wat hom opvallend gemaak het nie. Daar was nie iets aan sy voorkoms wat vir ons mooi was nie. Mense het die rug vir hom gedraai. Hy het swaargekry. Hy het geweet wat lyding is. Mense het hom vermy. Ons het niks van hom gedink nie. Hy het al die siektes gehad wat ons eintlik moes gehad het. Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar het. Maar ons het gedink dit is God wat hom vir sy eie oortreding straf. Hy is gewond as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kon word. Ons almal was soos skape wat verdwaal het. Elkeen het sy eie koers gekies. Maar die Here het al ons sonde op hom laat neerkom. Hy is sleg behandel. Tog het hy nie ’n woord gesê nie. Hy was so mak soos ’n lammetjie wat weggevat word om geslag te word. Hy was so stil soos ’n skaap wat geskeer word. Hy is gevonnis en uit die tronk weggevat om tereggestel te word. Wie het daaroor gedink dat hy doodgemaak kan word, dat hy ter wille van sy volk tereggestel kan word? Hy is by misdadigers begrawe. Sy graf is tussen sondaars, al het hy hom nooit aan geweld skuldig gemaak nie, selfs nie eens leuens verkoop nie. Die Here wou gehad het dat hy in ons plek geslaan moes word en in ons plek seerkry. Omdat hy homself aangebied het om ander se straf te dra, sal daar vir hom ’n nageslag wees. Sy naam sal nog lank bly lewe. Hy het gedoen wat die Here gedoen wou hê. Nadat hy so swaargekry het, sal hy sien wat daarvan gekom het. Hy sal tevrede wees met wat hy gedoen het. My dienaar was aan My gehoorsaam. Hy sal baie ander ook gehoorsaam aan My maak. Hy sal die straf op hulle sonde wegvat. Ek sal vir hom ’n plek gee tussen die belangrikes. Hy sal deel hê aan hulle eer. Hy was bereid om sy lewe op te offer. Hy het hom gewillig saam met die misdadigers laat tel. Hy was bereid om in te staan vir baie mense se sondes. Hy het vir die oortreders gepleit. Die Here sê vir Jerusalem: Die vrou wat nooit kinders gehad het nie, moet juig. Die een wat nie kinders in die wêreld kon bring nie, moet van blydskap sing. Sy gaan nou selfs meer kinders hê as ’n getroude vrou. Maak die tent waarin jy bly, nog groter vir hulle. Span nog meer seile. Maak die tenttoue langer. Kap die tentpenne verder weg in. Jy gaan uit jou nate bars. Jou kinders gaan die ander nasies oorrompel. Hulle gaan in die dorpe bly wat verwoes is. Moenie bang wees dat jy weer in die skande sal kom nie. Moenie huiwer omdat jy dink jy sal weer verneder word nie. Jy hoef nie weer terug te dink aan hoe jy in die skande gekom het toe jy jonk was nie. Jy kan nou maar vergeet hoe jy verneder is toe jy ’n weduwee geword het. Die Here wat jou gemaak het, sal nou jou man wees. Sy Naam is die Here van die magtige leërmag. Die hoë God van Israel sal jou bevry. Hy word genoem die God van die hele aarde. Jy is soos ’n vrou wat weggejaag is en wat seergekry het, soos ’n jong vrou wat op die straat uitgegooi is. Maar die Here roep jou terug en Hy sê vir jou: Ek het jou vir ’n klein tydjie verstoot, maar Ek vat jou nou met groot liefde weer terug. In ’n oomblik van woede het Ek die rug vir jou gedraai. Ek vat jou egter terug met liefde wat nooit sal ophou nie. So sê die Here wat jou bevry. Ek het in Noag se tyd belowe dat Ek nooit weer ’n watervloed oor die aarde sal laat kom nie. Ek belowe nou net so dat Ek nie weer in woede teen jou sal uitbars en jou straf nie. Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar my liefde vir jou sal nooit ophou nie. My ooreenkoms van vrede met jou sal nooit tot ’n einde kom nie. Dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee. Arme Jerusalem! Jy is deur storms geteister. Niemand het vir jou omgegee nie. Ek gaan jou met sierstene herbou. Ek gaan saffier in jou fondamente lê. Ek sal jou torings met robyne uitlê. Ek sal robyne in jou poorte inmessel. Ek sal edelstene teen jou mure vassit. Die Here self sal jou inwoners leer. Hulle sal vrede en voorspoed hê. Daar sal geregtigheid in die stad wees. Jy hoef nie bang te wees dat ander julle sal kom onderdruk nie. Niemand sal naby jou kom om jou skrik te maak nie. As iemand jou kom aanval, is dit nie omdat Ek dit wil hê nie. Wie ook al jou probeer aanval, gaan seerkry. Ek het die bewerker van yster gemaak wat wapens in die vuur vervaardig. Ek het die soldate gemaak wat met daardie wapens oorlog maak. Geen wapen wat teen jou gebruik word, sal suksesvol wees nie. Iemand wat verkeerd teen jou getuig in die hof, sal vervolg word. Dit is hoe Ek hulle beskerm wat doen wat Ek van hulle vra. Ek laat hulle regverdig behandel, sê die Here. Laat almal wat dors het, hier na die water toe kom. Ook dié wat nie geld het nie, kan kom. Kom koop en kom eet. Julle hoef selfs nie eens geld te hê nie. Kom kry wyn en melk verniet. Waarom betaal julle vir iets wat julle nie krag kan gee nie? Waarom span julle julleself in vir iets wat julle nie versadig kan maak nie? Luister baie goed na My sodat julle iets kan inkry wat goed is vir julle. Luister na wat Ek sê sodat julle voedsame kos kan inkry. Spits julle ore en kom na My toe. Luister mooi dat julle kan lewe. Ek wil met julle ’n vaste ooreenkoms sluit. Ek wil vir julle alles gee wat Ek vir Dawid belowe het. Ek het hom ’n getuie gemaak vir die nasies. Hy was ’n leier wat oor die nasies regeer het. Julle sal ook nasies beveel om na julle toe te kom, al het julle hulle nie voorheen geken nie. Nasies wat vroeër nie eers van julle geweet het nie, sal na julle toe aangehardloop kom. Hulle sal dit doen ter wille van die Here julle God. Hulle sal kom ter wille van die hoë God van Israel wat aan julle eer bewys het. Vra wat die Here van julle wil hê terwyl dit nog moontlik is. Bid tot die Here noudat Hy naby is. Die goddelose moet die verkeerde manier waarop hy lewe, laat staan. Die sondaar moet afsien van sy verkeerde gedagtes. Hy moet na die Here toe terugkom. Die Here sal hom graag terugontvang. Hy moet na ons God toe kom. Ons God sal hom alles vergewe. Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink. Die reën val op die aarde en die sneeu val uit die lug. Dit gaan nie weer terug na waar dit vandaan kom nie. Dit bly in die grond en laat die plante groei. Dit laat die plante saad maak om te oes. Dit gee kos om te eet. Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor Ek dit gestuur het. Julle sal baie bly wees wanneer julle uit Babel weggaan. Ek sal julle in vrede laat weggaan. Die berge en die heuwels sal van vreugde sing as julle verbykom. Die bome in die veld sal hande klap van blydskap. Waar daar doringbosse was, sal daar sipresbome opkom. In die plek van onkruid sal daar mirtebome groei. Dit sal ’n teken wees van die grootheid van die Here. Niemand sal dit ooit kan ontken nie. Die Here sê: Julle moet reg doen. Julle moet regverdig wees teenoor ander mense. Ek kom julle binnekort bevry. Die man wat die sewende dag reg deurbring en wat nie verkeerde dinge doen nie, sal gelukkig wees. Iemand wat van ’n ander volk kom, moet nooit dink die Here is nie bereid om hom in sy volk op te neem nie. Iemand wat sy manlikheid verloor het, hoef nie te dink dat hy onaanvaarbaar is omdat hy nie kinders kan hê nie. [4-5] Vir die ontmandes sê die Here: As hulle op die sewende dag maak soos Ek van hulle vra en by my ooreenkoms met hulle bly, sal Ek hulle ’n erenaam gee in my tempel. Dit sal ’n naam wees wat selfs beter is as kinders. Hulle sal ’n naam kry wat vir altyd onthou sal word. *** Ek sal die man wat van ’n ander volk af kom en bereid is om die Here lief te hê, toelaat om na my woonplek toe te kom. Hy moet doen wat die Here van hom vra. Hy moet gewillig wees om die sewende dag reg deur te bring. Hy moet ook volgens die ooreenkoms van die Here leef. Ek sal hom bly maak wanneer hy in my huis tot My kom bid. Ek sal met genoeë die diere aanvaar wat hy vir My slag en die offers wat hy op my altaar vir My bring. My huis sal ’n huis genoem word waar die nasies tot die Here kom bid. My Here, wat hulle wat weggevoer is, weer bymekaarmaak en terugbring, sê: Daar is ook nog ander wat Ek saam met Israel sal laat bymekaarkom. Al die wilde diere in die veld moet kom vreet. Die diere in die bos moet my volk kom verslind. Die leiers wat na my volk moes kyk, is almal blind. Hulle weet nie wat aangaan nie. Hulle is soos waghonde wat nie kan blaf nie. Hulle lê net heeltyd en slaap. Hulle is soos gulsige honde wat nooit genoeg kry om te eet nie. Hulle is soos mense wat skape oppas, maar nie weet waarheen om met hulle te gaan nie. Elkeen volg net sy eie kop. Hy soek net na wat vir hom goed is. Hulle sê: “Kom ons kry wyn in die hande. Ons drink tot ons dronk is. Môre sal dit selfs nog beter gaan as vandag!” Die man wat reg gelewe het, gaan sommer net so dood. Niemand steur hulle daaraan nie. Mense wat getrou aan die Here was, sterf. Niemand verstaan waarom hulle doodgaan nie. Maar so word die regverdige gespaar van verdere ellende in die wêreld. Dié wat eerbaar geleef het, kan gaan rus in die graf. Kom ’n bietjie nader, julle kinders van ’n vrou wat haar met towery ophou. Kom hier, julle wat ’n straatvrou vir ’n ma het. Met wie wil julle gekskeer? Oor wie het julle so baie te sê? Vir wie staan julle en tong uitsteek? Is julle nie self die kinders van mense wat in opstand gekom het teen God nie? Is julle nie die nageslag van bedrieërs nie? Julle het seks onder groot bome om die afgode te vereer. Julle slaap by mekaar onder groen bome ter wille van die seksgode. Julle sny kinders keelaf onder in die laagtes. Julle offer hulle vir die afgode onder ’n groot rots. Julle maak van die groot klippe onder in die spruit julle gode. Julle dink dat hulle julle lewens reg kan laat loop. Julle gooi drank oor hierdie klippe uit om vir die gode te offer. Julle kom sit kos voor die klippe neer om hulle te aanbid. Dink julle vir ’n oomblik dat Ek hiermee tevrede kan wees? Julle klim op hoë berge om daar vir die gode seks te hê. Julle klim teen die berge uit om daar vir die gode offers te gaan bring. Jy het jou afgode in jou huis gaan sit en die deur agter jou gesluit. Jy het padgegee van My af en soos ’n prostituut met die afgode in die bed gaan klim. Jy het met hulle ’n ooreenkoms gaan maak soos ’n slegte vrou wat betaal word om saam met haar minnaars in die bed te klim. Jy het olie aan jou gesmeer en reukwater aangesit om vir die afgod Molek te offer. Jy het ver gaan soek vir ander gode tot wie jy kan bid. Jy het selfs in dieptes onder die aarde gaan soek. Julle word moeg van die soekery, maar julle dink nie daaraan om op te hou nie. Julle begeerte dryf julle om nooit op te hou soek nie. Watter gode het julle so bang en beangs gemaak dat julle vir My gelieg het? Waarom het julle skoon van My vergeet? Waarom het julle My uit julle gedagtes laat gaan? Was dit omdat Ek so lank maar net stilgebly het dat julle opgehou het om respek vir My te hê? Ek sal nou vir almal wys hoe verkeerd julle was en watter foute julle gemaak het. Daardie afgode gaan julle niks in die sak bring nie. Dink julle julle klomp afgode gaan julle kom red as julle roep dat iemand julle tog moet kom help? As daar net ’n luggie roer, sal dit julle wegwaai. Hulle wat by My hulp kom soek, kan vir altyd in die land kom bly. Hulle sal na my woonplek toe kan kom om tot My te bid. Die Here sê: Herstel die pad. Maak dit weer reg. Vat die klippe uit die pad uit dat my volk weer kan terugkom. So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en wat totaal anders is: Ek bly wel hoog daar bo, maar Ek bly ook by mense hier onder wat verneder en nederig is. Ek laat hulle weer uit die grond uit opstaan. Ek gee vir hulle nuwe hoop. Ek sal nie aanhou stry met hulle nie. Ek sal ook nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie. Geen mens wat Ek gemaak het, sou dan kon bly lewe nie. Ek was kwaad vir my volk oor hulle altyd alles net vir hulleself wil hê. Ek het hulle gestraf. Ek het My eenkant gehou, maar hulle het maar net aangegaan en gemaak wat hulle wou. Ek het gesien wat toe met hulle gebeur het. Ek sal hulle weer herstel. Ek sal hulle teruglei en alles weer regmaak. Ek sal hulle wat huil, kom troos. Ek sal hulle weer laat sing. Alles sal weer reg wees vir dié wat hier naby is en dié wat nog daar ver weg is. Ek sal hulle gesond maak. Hulle wat sonder My probeer klaarkom, sal so onrustig wees soos die see wat nooit tot rus kan kom nie. Hulle sal soos die branders wees wat een laag opdrifsels na die ander op die strand uitstoot. Vir sulke mense sal daar net nooit kalmte kom nie, sê die Here. Skree so hard soos jy kan. Skree voluit. Roep so hard dat dit klink soos ’n trompet wat weergalm. Sê vir my volk wat hulle verkeerd gedoen het. Wys vir Jakob se kinders waar hulle oortree het. Hulle bid wel elke dag tot My. Hulle gee voor dat hulle graag wil doen wat Ek van hulle verwag. Hulle tree op soos ’n volk wat graag die regte dinge doen. Hulle probeer om nie af te wyk van die regulasies wat hulle God hulle gegee het nie. Hulle probeer om die regte besluite te neem. Hulle kom graag na My toe om My te ontmoet. Hulle vra vir die Here: “Sien U dit dan nie raak dat ons vir U kom vas en sonder kos bly nie? Steur U U dan nie daaraan dat ons voor U kom stil raak nie?” Die Here sê: “Ja, maar Ek sien ook raak dat wanneer julle vas, julle dit maar net gebruik om geld te maak. Julle gebruik dit as ’n verskoning om die mense wat vir julle werk net nog harder te laat werk. As julle vas, loop dit uit op rusies en bakleiery onder mekaar. Julle kan mos nie op so ’n manier vir My vas en dan verwag dat Ek na julle gebede moet luister nie! Op die dag dat julle vas, hou julle julleself kamtig nederig. Julle laat julle koppe vooroor hang soos ’n biesie wat geknak is. Julle trek begrafnisklere aan en julle gooi stof op julle koppe. En julle noem dit dan ’n vasdag. Dink julle nou dat dit die manier is om sonder kos klaar te kom? Is dit nou die dinge wat die Here gelukkig moet maak? Nee, die vas wat Ek van julle verwag, is dat julle die mense sal vrylaat wat julle onregverdig gevange hou. Hou op om die mense wat vir julle werk, soos gevangenes te behandel. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm. Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom. Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn. Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie. Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly. Rus ’n bietjie op die sewende dag. Jy mag nie op die Here se dag sommer net doen wat jy wil nie. Dit moet ’n dag wees waarop jy bly is. Jy moet daardie dag aan die Here afstaan. Jy moenie met jou gewone werk aangaan nie. Jy moet nie op daardie dag besigheid doen of transaksies sluit nie. As jy die sabbat so deurbring, sal jy bly wees dat jy aan die Here behoort. Ek sal sorg dat almal oor die hele wêreld jou ken. Jy sal alles geniet wat jou oorgrootoupa Jakob aan jou nagelaat het. Ek, die Here, belowe dit vir julle. Dit is nie of die Here julle nie kan bevry nie. Dit is ook nie dat Hy nie na julle wil luister nie. Dit is oor julle oortredings dat Hy niks van julle wil weet nie. Julle en julle God het vreemd geword vir mekaar. Julle sonde het gemaak dat Hy die rug vir julle gedraai het. Hy wil nie eers meer na julle luister nie. Julle hande is vol bloed. Misdaad klou aan julle vingers. Julle verkoop leuens. Julle beplan slegte dinge. Niemand is meer eerlik as hy iets sê nie. Die uitspraak van die hof kan jy nie vertrou nie. Elkeen reken op beloftes wat nooit nagekom word nie. Jy kan niemand meer op sy woord neem nie. Alles loop uit op bedrog. Al wat van iemand se woorde kom, is kwaad. Dit lê slangeiers en spin ’n spinneweb vir spinnekoppe. Die een wat hierdie eiers eet, gaan daarvan dood. Breek jy dit oop, kruip daar slange uit. Met die spinnerak van hulle woorde kan jy nooit vir jou klere maak nie. Wat hulle doen, is goed vir niks. Trouens, al wat van hulle geknoei kom, is misdaad. Hulle hande bring net geweld. Hulle hardloop agter die kwaad aan. Hulle huiwer nie ’n oomblik om iemand dood te maak nie. Hulle dink skelm dinge uit. Hulle laat ’n spoor van verwoesting agter hulle waar hulle gaan. Hulle ken nie so iets soos vrede nie. Op hulle pad bestaan daar nie so iets soos regverdigheid nie. Hulle paaie is vol kronkels en draaie. Dié wat saam met hulle loop, kom nooit tot rus nie. Daar is niemand onder ons wat reg doen nie. Ons ken nie meer regverdigheid nie. Ons wag verniet dat dit moet verander. Alles bly net soos dit is. Ons strompel maar voort in die stikdonker. Ons loop soos blindes voel-voel teen ’n muur. Ons tas rond soos mense sonder oë. Ons val oor ons voete asof ons in die donker loop terwyl dit helder dag is. Tussen mense wat springlewendig is, is ons soos dooie lyke. Ons is almal soos bere wat ongeduldig brom en duiwe wat in hulle kroppe kir. Ons sit en wag om bevry te word, maar daar gebeur net mooi niks nie. Ons redding bly maar net weg. Ons het al so baiekeer teen die Here in opstand gekom. Ons oortredings kla ons aan. Dit maal in ons gedagtes. Ons is bewus van alles wat ons verkeerd gedoen het. Ons het ons teen die Here verset. Ons het gemaak asof die Here nie bestaan nie. Ons het die rug vir ons God gedraai. Ons het oor geweld en bedrog begin praat. Ons het leuens uitgedink en dit vir almal vertel. Daar is nie meer regverdige uitsprake in die hof nie. Waarheid het tot ’n val gekom. Eerlikheid mag nie eers meer in die hofsaal inkom nie. Die waarheid het weggeraak. Iemand wat probeer om kwaad te vermy word daarvoor vervolg. Die Here het gesien wat gebeur. Dit is vir Hom heeltemal verkeerd dat daar nie meer geregtigheid onder ons is nie. Die Here is verbaas om te sien dat daar niemand was wat ingryp om dinge te probeer verander nie. Hy gaan daarom self optree om toe te sien dat daar geregtigheid kom. Hy gaan regverdigheid aantrek soos ’n soldaat sy uniform. Hy gaan bevryding op sy kop sit soos ’n ysterhelm. Hy trek die klere van vergelding aan. Hy gaan sy woede aan sy lyf dra soos ’n jas. Hy gaan elkeen terugbetaal vir wat hy gedoen het. Hy sal sy teëstanders terugbetaal met woede en sy vyande met hulle eie dade. Hy sal die lande wat oorsee is, volgens hulle verkeerde optrede vergeld. Dan sal almal in die wêreld respek hê vir die Here. Hy sal kom soos ’n bruisende rivier wat deur ’n stormwind aangejaag word. Die Here sal na Sion kom om almal te bevry wat hulle verset teen die Here laat staan het, so het die Here gesê. Ek gaan ’n ooreenkoms met hulle aan, sê die Here: My krag sal by julle bly. Wat Ek vir julle gesê het, sal by julle en julle nageslag en ook hulle kinders bly, van nou af en vir altyd. Staan op, Jerusalem, dat jy lig kan gee vir die wêreld. Die Here is by jou. Hy maak jou soos ’n lig wat skyn in die wêreld. Dit is donker in die wêreld. Daar is duisternis onder die volke. By jou laat die Here dit egter lig wees. Hy is by jou. Hy maak lig vir jou dat jy ook ’n lig kan wees. Die nasies kom na jou lig toe. Die konings van die wêreld kom na die helder lig wat by jou skyn. Kyk ’n bietjie wat besig is om reg rondom jou te gebeur. Jou mense begin bymekaarkom om terug te kom huis toe. Jou seuns kom van ver af terug. Jou dogters word aangedra terug na jou toe. Wanneer jy sien wat gebeur, gaan jy van blydskap straal. Jou hart sal opgewonde begin klop. Die seehandelaars sal met jou begin besigheid doen. Die rykdom van die wêreld sal na jou toe begin vloei. Lang karavane van kamele sal uit Midian en Efa op jou toesak. Hulle sal uit Skeba aankom met goud en wierook om die Here te aanbid. Jy kan die kleinvee van Kedar en die bokramme van Nebajot gebruik soos jy wil. Jy kan hulle enige tyd op die altaar vir die Here kom offer. Hulle is ’n aanwins vir sy tempel. Wat is dit wat soos wolke hier aangesweef kom, soos duiwe wat terugkom hok toe? Dit is die skepe van die ander lande wat jou kinders weer huis toe bring. Vooraan is die skepe van Tarsis. Hulle is gelaai met goud en silwer om die Here jou God, die groot God, te vereer. Hy wil sy volk in ere herstel. Buitelanders sal jou mure weer opbou. Hulle konings sal vir jou werk. Toe Ek vir jou kwaad was, het Ek jou gestraf. Noudat Ek jou jammer gekry het, sal Ek weer vir jou goed wees. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn. Die beste hout uit die Libanon sal na Jerusalem gebring word. Sipres-, plataan- en dennehout sal gebruik word om my tempel mooi te maak. Ek sal die plek waar Ek aanbid word, mooi laat maak. Die volke wat jou onderdruk het, sal by jou kom verskoning maak. Almal wat op jou neergesien het, sal onderdanig wees en by jou voete kom kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, en: Sion van die heilige God van Israel. Jy was vroeër ’n eensame en verlate plek waarby niemand wou kom nie. Ek maak jou nou ’n pragtige plek wat een geslag mense na die ander graag wil besoek. Nasies sal vir jou gee wat jy nodig het. Konings sal jou soos ’n ma versorg. Jy sal dan besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos het. Die magtige God van Jakob het jou vrygemaak. Ek sal sorg dat jy goud kry pleks van koper. In die plek van yster sal Ek jou silwer laat kry. Koper sal in die plek van hout kom en yster in die plek van klip. Ek sal vrede oor jou laat regeer. Geregtigheid sal jou leier wees. Daar sal nie weer van geweld in jou land gehoor word nie. Verwoesting en vernietiging sal nie meer in jou gebied voorkom nie. Die mure om jou stad sal jou beskerm. Jy sal met vreugde by jou poorte kan in- en uitgaan. Jou lig sal gedurende die dag nie meer van die son af kom nie. Jy sal nie meer afhanklik wees van die maan wat in die nag skyn nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Jou God sal oor jou skyn. Jou dae van hartseer is verby. Jou son sal nooit ondergaan nie. Jou maan sal nooit donker word nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Almal van jou volk sal doen wat reg is. Die land sal vir altyd aan hulle behoort. Hulle sal die plante wees wat Ek self daar geplant het. Ek het hulle met my hande gemaak sodat hulle eer aan My kan gee. Die kleinste groepie sal duisende sterk word. Dié wat die minste was, sal ’n groot volk word. Op die regte tyd sal Ek dit alles laat gebeur. Die Gees van my Heer, die Here, het in my lewe gekom. Die Here het my die krag gegee om goeie nuus te bring vir dié wat moedeloos is. Ek tel dié op wat neerslagtig is. Vir hulle wat in die tronk sit, sê ek dat hulle vrygelaat gaan word. Vir hulle wat toegesluit is, kondig ek aan dat hulle sal uitkom. Hy stuur my om hulle wat sit en huil te troos. Hy laat my aankondig dat die tyd gekom het dat die Here sy volk gaan bevry en sy vyande gaan straf. Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is. Hulle sal geboue herstel wat lank verwoes gelê het. Plekke wat vroeër afgebreek was, sal hulle weer opbou. Hulle sal dorpe wat geslagte lank verwoes gelê het, nuut maak. Buitelanders sal vir julle werk. Hulle sal julle skape oppas en op julle landerye en in julle wingerde vir julle werk. Julle sal die Here se werkers genoem word. Mense sal van julle praat as God se dienaars. Julle sal die geld van die nasies kan gebruik om van te lewe. Julle sal dit alles besit. Julle sal nie verder bespot en beledig word nie. In die plek daarvan sal julle in julle land twee keer soveel besit as wat julle tevore gehad het. Julle blydskap sal geen einde hê nie. Ek is die Here. Ek soek geregtigheid by julle. Ek haat diefstal en onreg. Ek sal my woord hou en vir my volk hulle beloning gee. Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie. Hulle nageslag sal bekend word onder die nasies. Die volke sal hulle ken. Almal wat sien hoe dit met hulle gaan, sal raaksien dat hulle ’n volk is vir wie die Here voorspoedig maak. Ek is baie bly oor wat die Here gedoen het. Ek is vol vreugde omdat Hy my gered het. Hy het my soos ’n bruidegom met ’n kroon op sy kop gemaak. Ek is soos ’n bruid wat met juwele versier is. Die aarde laat plante opskiet. In ’n tuin kom daar plantjies uit. My Heer, die Here, sal net so ook sy bevryding vir my laat kom. Hy sal dan voor al die nasies grootgemaak kan word. Vir Sion se onthalwe sal ek bly roep. Ek sal ter wille van Jerusalem nie ophou roep voordat die stad bevry is nie. Ek sal aanhou roep totdat sy redding brand soos die lig van ’n fakkel. Die volke sal sien hoe jy gered word. Die konings sal staan en kyk hoe Jerusalem vrykom. Die Here sal vir jou ’n nuwe naam gee wat Hy self gekies het. Die Here sal jou in sy hand hou soos ’n pragtige kroon wat ’n koning op sy kop sit. Daar sal nie meer van jou gepraat word as die vrou wat geskei het nie. Jou land sal nie langer ’n verlate stuk grond wees nie. Jy sal die Here se liefling genoem word. Jou land sal aan die Here verbind wees. Die Here het jou lief. Hy sorg vir jou land soos ’n man vir sy vrou sorg. Die mense wat in jou woon, sal vir jou sorg. Dit sal wees soos ’n jongman wat met ’n meisie trou. Soos die bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees. Ek het wagte op Jerusalem se mure uitgesit. Hulle moet dag en nag op die uitkyk wees. Hulle moet die Here sonder ophou aan sy beloftes herinner. Hulle mag nooit ophou nie. Hulle mag nooit kopgee nie. Hulle moet aanhou totdat die Here Jerusalem so herstel het dat die aarde oor hom kan sing. Die Here het ’n belofte aan Jerusalem gemaak. Hy het die krag om by sy belofte te bly. Hy het gesê: Ek sal nooit weer toelaat dat jou vyande jou koring by jou kom afvat om dit te eet nie. Buitelanders sal nie weer die wyn kom uitdrink waarvoor jy so hard gewerk het nie. Hulle wat die koring bymekaargemaak het, sal dit self eet en die Here daarvoor dank. Hulle wat die druiwe gepars het, sal die wyn self drink by die Here se tempel. Gaan uit by die hek. Gaan deur die poort van die stad uit buitetoe. Gaan maak die pad reg vir die volk wat terugkom. Maak die pad weer oop. Vat die klippe uit die pad uit. Sit ’n teken op wat die volke kan sien. Die Here stuur ’n boodskap uit oor die hele wêreld: “Sê vir die inwoners van Sion: Die Een wat jou verlos, is op pad na jou toe. Hy bring sy beloning saam met Hom. Hy laat hulle wat Hy loskoop, saam met Hom kom. Hulle sal die Here se volk genoem word. Hulle is die mense wat die Here vrygemaak het. Jerusalem sal genoem word die geliefde stad. Dit is die stad wat nie aan homself oorgelaat is nie.” Wie is dit wat daar van Edom af aankom? Wie is dit wat van Bosra af kom met sulke helder rooi klere? Wie is dit wat so flink aangestap kom met daardie klere? Dit is Ek, die Here. Ek kom vir julle sê dat Ek julle gaan red. Ek het die krag om julle vry te maak. Maar waarom is u klere dan so rooi gevlek soos iemand wat in die wynpers druiwe uit- getrap het? Ek het die nasies in die parskuip gaan trap soos druiwe. Ek was alleen. Niemand het My gehelp nie. Ek het hulle in my woede uitgetrap soos druiwekorrels. Ek was kwaad en Ek het hulle stukkend getrap. Hulle bloed het op my klere gespat. Dit het my klere vuil gemaak. Ek het besluit dat dit die regte tyd was om die volke te straf. Die tyd het gekom om my volk te bevry. Ek het gekyk, maar niemand gesien wat My kon help nie. Ek was verbaas dat daar niemand was om My te ondersteun nie. My woede het die oorhand gekry en Ek het dit met my eie krag gedoen. Ek was so kwaad dat Ek die nasies in die grond in getrap het. Ek het hulle in my woede laat steier en hulle bloed oor die aarde laat uitloop. Ek wil oor die liefde en getrouheid van die Here praat. Ek wil die Here se Naam grootmaak oor alles wat Hy vir ons gedoen het. Ek wil sing oor al die baie goeie dinge wat Hy vir Israel gedoen het. Ek wil die Here prys vir al sy liefde en simpatie. Die Here het gesê: Hulle is tog my eie volk. Hulle is my kinders wat My nie sal bedrieg nie. Hy het hulle bevry uit hulle nood. Hy self het hulle verlos. Omdat Hy vir hulle lief was en hulle jammer gekry het, het Hy hulle gered. Hy het hulle nog altyd opgetel en hulle gedra. Hulle het egter in opstand gekom. Hulle het die Gees van God se gevoelens seergemaak. Die Here het daarom vir hulle ’n vyand geword. Hy het teen hulle baklei. Toe het sy volk teruggedink aan die dae lank terug in die tyd van Moses. Hulle het gevra: “Wat het geword van die Here wat sy volk saam met hulle leier deur die see laat trek het? Wat het van Hom geword wat sy Gees in hulle harte laat kom woon het?” Hy het met sy krag die see voor hulle laat oopgaan toe Moses sy hand uitgesteek het. Hy het daarmee seker gemaak dat sy Naam vir altyd onthou sal word. Hy het hulle reg deur die bedding van die see gelei soos perde wat oor die vlaktes hardloop sonder om te struikel. Die Here se Gees het hulle na veiligheid gelei soos vee wat na ’n weiveld in ’n laagte gebring word. So het U, Here, u volk gelei sodat u wonderlike Naam vir altyd onthou kan word. Kyk tog ’n bietjie op ons af van daar bo van u hoë woonplek af. Sien ons raak. Wat het geword van die verterende liefde wat U vir ons gehad het en die groot dade waarmee U ons gered het? Moet tog nie u liefde en u meegevoel van ons af weghou nie. U is tog ons Vader. Abraham het nie van ons geweet nie. Israel kon ons nie geken het nie. Maar U, Here, is ons pa. U Naam was nog altyd “ons Bevryder”. Here, waarom het U toegelaat dat ons vreemdelinge vir U geword het? Waarom het U ons so ongevoelig laat word dat ons nie meer respek vir U het nie? Help ons dat ons weer vir U kan lewe en weer aan U kan behoort. Ons kon vir ’n kort rukkie U by die tempel aanbid. Ons vyand het dit ongelukkig verwoes. Ons het geword soos mense wat nooit aan U behoort het nie, soos mense van wie daar nooit gesê is dat hulle u volk is nie. As U tog maar net die lug wou oopskeur en van bo af hiernatoe wou afkom! Die berge sal dan voor U skud en bewe soos wanneer vuur hout aan die brand steek en dit die water laat kook. U vyande sal dan van U kennis neem. Die volke sal van bangheid vir U bewe. U sal vreeslike dinge doen wat ons nie verwag het nie. U sal afkom en die berge sal skud. Niemand het nog ooit van ’n god gehoor of een gesien wat soos U dinge laat gebeur vir hulle wat op Hom vertrou nie. U wil graag te doen kry met hulle wat met vreugde reg leef en in gedagte hou hoe U wil hê dat hulle moet leef. Maar U is kwaad vir ons, want ons het sonde gedoen. Ons doen dit nog van altyd af. Kan ons nog ooit gered word? Ons het almal geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie. Alles wat ons gedink het reg is, is maar soos vuil klere. Ons almal is soos blare wat van die boom afval en saam met die wind weggewaai word. Nie een van ons het tot U gebid of U gevra om ons te help nie. U het daarom van ons padgegee en ons aan ons eie oortredings oorgelaat. U is tog ons Vader, Here. Ons is die klei waaraan U ’n vorm gegee het. U hande het ons almal gemaak. Moet tog nie so verskriklik kwaad bly vir ons nie, Here. Hou tog op om ons sonde vir altyd teen ons te hou. Hou tog in gedagte dat ons almal aan u volk behoort. U stad Sion het so verlate soos ’n woestyn geword. Daar bly nie meer mense in Jerusalem nie. U pragtige tempel waar ons ouers U kom vereer het, is nou afgebrand. Alles wat vir ons waardevol was, is nou daarmee heen. Gaan U hierdie dinge dan maar net so los, Here? Gaan U maar net stilbly en toelaat dat ons so vreeslik swaarkry? Ek was bereid om die gebede te verhoor van mense wat nog nie eens tot My gebid het nie. Ek was reg dat hulle My in die hande kon kry as hulle maar net na My wou soek. Ek sou vir ’n volk sê wat nie eens tot My wil bid nie: Hier is Ek! Ek het die hele dag uitgereik na ’n volk wat net hulle eie kop wil volg. Hulle volg hulle eie verkeerde koers. Hulle tart My sonder ophou uit. Hulle slag diere om in groen parke te offer. Hulle brand offers op plat rotse. Hulle gaan bly tussen die grafte en slaap in grotte om die geeste te aanbid. Hulle eet moedswillig varkvleis. Daar is vleis wat vir die afgode geoffer word in hulle borde. Hulle sê: “Bly weg van my af. Moenie aan my raak nie. Ek is soos ’n god vir jou.” Ek kan sulke mense nie verdra nie. Hulle irriteer My. My besluit staan vas. Ek gaan dit nie uitstel nie. Ek gaan hulle straf. Ek gaan vir hulle gee wat hulle verdien. Ek gaan hulle terugbetaal vir alles wat hulle gedoen het, sê die Here, vir al hulle en ook hulle ouers se oortredings. Hulle het bo-op die berge wierook gaan offer vir die gode. Hulle het My beledig met hulle afgodsoffers wat hulle bo-op die heuwels gebring het. Maar so sê die Here: Ter wille van hulle wat vir My leef, sal Ek hulle nie almal vernietig nie. Ek sal maak soos iemand wat aan ’n druiwetros nog bruikbare korrels kry. Hy sê: “Moenie dit weggooi nie, daar is nog korrels aan wat ons kan gebruik.” Ek sal vir Jakob kinders laat oorbly. Daar sal uit Juda mense oorbly wat die berggedeeltes sal erf. Die mense wat Ek vir My uitkies, sal die land besit. Hulle wat vir My lewe, sal daar gaan woon. Die volk wat My aanbid, sal hulle skape in die Saronvlakte kan laat wei. Hulle sal beeste in die Akorlaagte aanhou. Maar party van julle het mos van die Here af weggegaan. Julle het die Here se tempel uit julle gedagtes weggeskuif. Julle aanbid eerder die geluksgod en die noodlotsgod. Ek het besluit dat julle almal doodgemaak sal word. Julle sal almal tereggestel word. Ek het na julle geroep, maar julle het nie gereageer nie. Ek het met julle gepraat, maar julle wou nie luister nie. Julle het aangegaan om alles te doen wat vir My verkeerd is. Julle het verkies om die dinge te doen wat My nie aanstaan nie. Omdat dit gebeur het, sê my Heer, die Here, sal hulle wat aan My getrou gebly het, hulle versadig eet. Maar julle sal honger bly. Hulle sal genoeg hê om te drink. Julle sal dors bly. Hulle sal vrolik wees en julle sal treurig wees. Hulle sal van blydskap sing, terwyl julle van hartseer kreun. Julle name sal vloekwoorde word vir hulle wat aan My behoort. Die Here sal julle uitroei. Hy sal nuwe name gee vir dié wat aan Hom getrou gebly het. Elkeen in die land wat vir voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou bly. Elkeen wat ’n eed aflê, sal dit doen in die Naam van die God op wie ’n mens kan staatmaak. Die probleme wat daar vroeër was, sal iets van die verlede wees. Dit sal vergeet word. Kyk, Ek gaan ’n hemel en aarde maak wat heeltemal nuut is. Niemand sal meer aan die ou een dink nie. Niemand sal daarna terugverlang nie. Julle moet juig en sonder ophou bly wees oor wat Ek gaan doen. Ek gaan Jerusalem ’n plek van blydskap maak waarin mense bly wat gelukkig en tevrede is. Ek gaan vreugde hê aan Jerusalem. Ek gaan bly wees oor die mense wat daar woon. Daar sal nooit weer in die stad iemand gehoor word wat huil of iemand wat treur nie. Kinders sal nie daar doodgaan terwyl hulle nog babatjies is nie. Ou mense sal eers op ’n ryp ouderdom doodgaan. As iemand doodgaan voordat hy 100 jaar oud is, sal dit as ’n straf gesien word. [21-22] Hulle sal huise bou wat hulle nie hoef af te staan nie, maar waarin hulle self kan bly. Hulle sal wingerde aanplant waarvan hulle nog in hulle eie leeftyd druiwe kan pluk. Hulle sal so lank leef soos ’n boom. Hulle wat Ek vir My gekies het, sal nog die vrug kan geniet van dit wat hulle gemaak het. *** Hulle sal hulle nie hoef besig te hou met dinge wat geen voordeel bring nie. Hulle sal nie kinders vir die ongeluk grootmaak nie. Die Here sal hulle en hulle kinders voorspoedig maak. Ek sal vir hulle gee waarvoor hulle bid, selfs nog voor hulle daarvoor gevra het. Terwyl hulle nog besig is om te bid sal Ek reeds na hulle gebed geluister het. Die wolwe en die lammetjies sal saam eet in die veld. Leeus sal gras vreet soos beeste. Slange sal van stof leef. By my tempel, sê die Here, sal niemand seergemaak word of enigiets beskadig word nie. Die Here sê: Die stoel waarop Ek sit om te regeer is bo in die lug. Die plek waar Ek my voete sit, is onder op die grond. Waar sal julle dan ’n huis vir My kan bou waarin Ek sal kan bly? Ek het self alles gemaak sodat alles aan My kan behoort, sê die Here. Ek hou daarvan om mense te sien wat nederig is, wat jammer is oor hulle sonde en respek het vir My. Maar daar is mense wat hulle eie kop volg. Hulle doen afskuwelike dinge. Hulle slag bulle om te offer, maar hulle maak ook mense dood. Hulle slag lammers om te offer, maar hulle maak ook honde dood om te offer. Hulle bring offers van graan, maar ook van varkbloed. Hulle brand wierookoffers, maar hulle bid tegelyk tot afgode. Ek het besluit om dinge met hulle te laat gebeur waarvoor hulle bang is. Ek het hulle mos geroep, maar niemand wou My antwoord nie. Ek het met hulle gepraat, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het aangehou om te doen wat vir My verkeerd is. Hulle het hulle toegespits op die dinge wat vir My onaanvaarbaar is. Julle wat respek het vir die Here se woord moet hoor wat die Here vir julle sê: Die mense uit julle volk wat julle haat en julle verstoot omdat julle aan My getrou bly, sal spot en vir julle sê: “Eer maar die Here. Laat ons sien waarom julle so bly is oor God!” Hulle gaan in die skande kom. Luister na die lawaai wat uit die stad kom! Hoor die rumoer daar by die tempel! Dit is die geluid van die Here wat sy vyande terugbetaal vir wat hulle gedoen het. Geboortepyne kom eers voordat ’n vrou ’n baba in die wêreld bring. ’n Baba word nie gebore as die pyne nie eers gekom het nie. Wie het al gehoor dat dit anders kan wees? Wie het al so iets gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of kom ’n volk in een enkele oomblik in die wêreld in? Sion het nog skaars geboortepyne gevoel, toe is haar seun gebore. Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God. Almal wat lief is vir Jerusalem, moet saam met die stad bly wees. Juig saam met die stad! Almal wat oor Jerusalem getreur het, moet nou saam met haar vrolik wees. Drink aan Jerusalem se voorspoed soos ’n baba aan sy ma se bors drink om versadig te word. Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel. Soos ’n ma haar kind troos, sal Ek julle vertroos. Ek sal julle veilig laat voel in Jerusalem. Wanneer julle sien wat met julle gebeur, sal julle baie bly word. Julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitloop. Dit sal duidelik word dat die Here sorg vir hulle wat vir Hom lewe, maar dat Hy sy vyande straf. Kyk, die Here kom met vuur na die wêreld toe. Sy oorlogswaens kom soos ’n stormwind. Hy kom om met die hitte van sy woede en met sy vuurvlamme te straf. Hy kom om met vuur en swaard te oordeel oor almal wat leef. Die Here sal baie laat doodgaan. Die Here sê: Almal sal doodgaan wat hulleself afsonder en hulleself toewy aan die afgodsdiens in die groen parke waar hulle varkvleis en rotte en vleis wat verbode is, eet. Ek weet wat hulle doen en wat in hulle gedagtes omgaan. Die tyd kom dat Ek al die nasies en die taalgroepe bymekaar gaan laat kom. Hulle sal kom en hulle sal sien hoe sterk Ek is. Ek sal vir hulle ’n teken gee. Uit hulle wat nog oor is, sal Ek mense stuur na die nasies toe, na Tarsis, na Pul, na die Lidiërs (met hulle bekwame boogskieters), na Tubal en Griekeland, na al die lande ver oorkant die see wat nog nie van My gehoor het en nog nie gesien het hoe magtig Ek is nie. Hulle sal die nasies inlig oor my belangrikheid. Hulle sal almal terugbring van julle volk wat tussen die nasies bly. Hulle sal daardie mense soos ’n offer na die tempel in Jerusalem bring. Hulle sal op perde en waens, drastoele, muile en kamele na Jerusalem toe terugkom, sê die Here. Dit sal wees soos wanneer Israel hulle graanoffers in spesiale houers na die tempel toe bring. Ek sal uit dié wat terugkom, mense aanstel wat vir My by die tempel kan werk. Julle nageslag en julle naam sal voortbestaan, sê die Here, net so seker as wat die nuwe hemel en aarde wat Ek maak, voor My sal bly staan. Almal wat leef, sal maand vir maand en week vir week kom om tot My te bid, sê die Here. As hulle uit die stad uitgaan, sal hulle die lyke sien van almal wat teen My in opstand gekom het. Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie. Die vuur waarin hulle brand, sal nooit doodgaan nie. Dit sal vir almal iets afgrysliks wees. In hierdie boek lees ons alles wat Jeremia gesê het. Sy pa se naam was Gilkija. Jeremia kom uit die dorpie Anatot, wat in die Benjaminfamilie se gebied is. Hy en sy familie was mense wat by die tempel van daardie tyd gewerk het. Hulle was priesters. Die Here wou sekere dinge vir die koning en die volk sê. Hy het Jeremia daarvoor gebruik. Hy het vir hom boodskappe gegee in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was (ongeveer 627 v.C.). Josia was die seun van koning Amon. Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee ook in die tyd van koning Jojakim, wat Josia se seun was, tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was (tot 586 v.C.). In Augustus van hierdie jaar is die mense wat in Jerusalem gebly het, gevang. Die mense van Babel het die inwoners van Jerusalem uit Juda weggevat na hulle land toe. Hulle sou in Babel in ballingskap moes bly. Die Here het vir my gesê: “Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel om namens My met die nasies van die wêreld te praat.” Ek het geantwoord en gesê: “Nee, Here, ek kan nie goed praat nie en ek is gans en al te jonk vir dié belangrike taak.” Maar die Here het my geantwoord: “Moenie sê jy is te jonk nie. Jy moet na die mense toe gaan na wie Ek jou stuur en vir hulle my boodskap gee. Jy moet ook nie vir hulle bang wees nie. Ek belowe jou, Ek sal by jou wees en jou beskerm.” Toe het dit vir my gevoel of die Here met sy hand aan my mond raak. Hy het vir my gesê: “Ek sit die woorde wat jy nodig het, in jou mond. Ek gee jou van vandag af mag en invloed oor nasies en regerings. Party van hierdie nasies moet jy soos bossies uittrek of soos ’n muur afbreek sodat daar heeltemal niks van hulle oorbly nie. Ander moet jy van nuuts af begin bou en sterk maak.” Die Here het toe vir my gesê: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n amandeltakkie.” En die Here het vir my gesê: “Jy is reg, dit is ’n amandeltakkie. Die amandelboom is gevoelig en weet altyd eerste dat die lente naby is, dan maak hy bloeisels. Net so sal Ek ook fyn aanvoel en sorg dat wat Ek gesê het moet gebeur, op die regte tyd sal gebeur.” Die Here het toe weer met my gepraat en gevra wat ek sien. Ek het Hom geantwoord: “Ek sien ’n pot in die noorde wat staan en kook en dit lyk of die pot na ons kant toe wil omval.” Toe sê die Here: “Jy het reg gesien. Vanuit die noorde sal ’n doodse gevaar oorspoel oor al die mense wat in Juda bly. Ek beveel al die konings in die noorde om Jerusalem toe te kom. Hulle sal na die ingange van Jerusalem toe kom en elkeen vir hom ’n plek kry waar hy kan baasspeel. Hulle sal Jerusalem se mure probeer afbreek om so in die stad in te kom. Hulle sal ook van die ander stede in Juda aanval. Op dié manier sal Ek my mense in Juda straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle was nie lojaal aan My nie. Hulle het agter ander gode aangeloop. Die ergste is, hulle het hierdie beelde met hulle eie hande gemaak en dan buig hulle sowaar voor so ’n beeld asof dit ’n regte god is! “Maak klaar, Jeremia, en gaan sê vir die mense alles wat Ek te sê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou dalk ’n rede om bang te wees! Jy kan rustig wees, Ek maak jou so sterk soos ’n stad wat ’n muur om het om die mense te beskerm. Of Ek maak jou soos ’n ysterpaal wat vasgeplant is of so hard soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om al die aanvalle van mense op jou te oorleef. Dit maak nie saak of die aanvalle van die konings van Juda en hulle amptenare of die priesters of enige van die land se mense kom nie. Hulle sal jou definitief probeer onderkry, maar hulle sal dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en Ek sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe jou dit!” Die Here het nog iets vir my gegee wat ek vir hulle moes sê. Hy het gesê: “Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal dit kan hoor. Die Here sê: Ek onthou nog lank gelede toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Toe wou julle My so graag tevrede stel. Julle was selfs bereid om My deur die dorre woestyn te volg waar daar geen landerye vir kos was nie. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.” Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook! Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword. Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!” Die Here sê verder: “Ek het julle na ’n land gebring waar alles baie goed groei. Ek wou hê dat julle die vrugte en die goeie dinge wat die land gee, geniet. Maar wat het julle gedoen? Julle het in my land ingekom en dit met julle afgode bemors. Julle het die land wat julle van My sou erf iets gemaak om te haat. Die priesters het hulle geensins aan die Here gesteur nie. Die regsgeleerdes het nie eens twee keer aan Hom gedink nie. Die leiers van die land het teen die Here in opstand gekom. Die profete het nou gesê die god Baäl het vir hulle die boodskappe gegee, nie die Here nie. Op dié manier het hulle hulle tyd eintlik op niks gemors. Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Maar dit hou nie hier op nie, Ek kla ook julle kinders en hulle kinders aan oor die verkeerde dinge wat gedoen is. Gaan in ’n westelike rigting tot by Siprus en oos tot by Kedar. Kyk ’n bietjie mooi wat daar aangaan. Het iets so vreemds al ooit gebeur dat ’n volk hulle gode omgeruil het vir ander gode selfs al was hulle nie eintlik regtig gode nie? Ek is tog nie ’n gewone god nie, en tog het my eie mense My vir gode verruil wat niks werd is nie! Die hemele kyk geskok neer op wat hier aan die gang is en bewe van verbasing,” sê die Here. “My volk het twee slegte dinge gedoen: Ek is soos ’n fontein wat lewe gee vir mense wat die water drink. Wat doen hulle? Hulle het van My af weggegaan. Hulle het ook vir hulle bakke gaan uitkap om water in op te vang. Die probleem is dat hierdie bakke gekraak is en nie water kan hou nie.” “Het Israel ’n slaaf geword? Hulle is mos nie as slawe gebore nie. Hoekom word hulle dan nou soos ’n prooi wat gejag word? Waarom dreig die vyand Israel dan nou soos leeus wat brul om die prooi te storm? Hulle het die land verwoes en die stede is nou net ’n hoop klippe wat daar lê. Daar is nie meer mense wat daar bly nie. Die Egiptenaars uit Memfis en Tagpanges het Israel se mag gebreek en hulle verneder. Julle het die moeilikheid oor julleself gebring. Ek wou vir julle rigting en leiding gee, maar julle het julle eie koers ingeslaan en julle nie aan My gesteur nie. Wat gaan dit julle help om by Egipte of selfs by Assirië hulp te gaan soek? Julle sal die gevolge dra van die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Julle gaan swaarkry omdat julle julle nie aan My gesteur het nie. Julle sal nog agterkom hoe ’n slegte ding dit is wat julle gedoen het om My in die steek te laat. Wat julle doen, wys dat julle geen respek meer vir My het nie,” sê die Here wat sterker en magtiger as alles en almal is. “Dit is nou al lank terug dat Ek gesorg het dat julle nie meer ander mense se slawe is nie. Nogtans sê julle dat julle nie aan My gehoorsaam sal wees nie. Julle is net soos mense wat rondslaap. Op elke heuweltjie en onder al wat ’n koelteboom is, buig julle voor ander gode neer. Ek verstaan nie hoe dit kon gebeur nie. Toe Ek julle geplant het, was julle soos uitsoekdruiweplante. Die beste soort wat ’n mens kan kry! Hoe is dit dan moontlik dat julle so kon verander dat julle nou soos wilde druiweplante is? Al was julle julle ook met baie seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Al die verkeerde en slegte dinge wat julle gedoen het, is soos vuil vlekke op klere. Niks kan dit uitwas nie,” sê die Here. Niemand het soveel mag soos Hy nie! “Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie ons knie gebuig voor die beelde wat van die god Baäl gemaak is nie.’ Gaan kyk gerus maar wat julle in die valleie aangevang het. Neem ’n bietjie verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree nes ’n kameelkoei op wat rondhardloop op soek na ’n bul. Julle maak soos ’n wildedonkie wat aan die woestyn gewoond is. As dit paartyd is, snuif sy in die lug op soek na ’n hings. Sy word gedryf deur haar drange na die hings. Die hingste hoef nie eens na die merrie te soek nie, sy hardloop agter hulle aan. Julle maak net so in julle gehardloop agter die gode aan. Israel, waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle keel brand van die dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons het lief geword vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om voor hulle neer te buig nie!’” “As ’n dief betrap word, kom hy in die skande. Israel se konings, leiers, priesters en die profete sal almal net so in die skande kom oor die verkeerde dinge wat hulle doen. Hulle sê vir ’n beeld wat uit hout gesny is: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld wat uit klip gekap is, sê hulle: ‘Ons is jou kinders.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie” sê die Here, “maar net sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle My om hulle te help. Hoekom roep julle nie hierdie gode wat julle gemaak het om julle te kom help nie? As hulle dan so goed is, laat hulle julle uit die moeilikheid help as hulle kan! Julle het omtrent net soveel gode as wat daar stede en dorpe is. Waarom maak julle of dit Ek is wat verkeerd gedoen het? Julle is die mense wat teen My in opstand gekom het,” sê die Here. “Dit het nie eens gehelp dat Ek julle kinders gestraf het nie. Dit lyk nie juis of hulle iets uit die straf geleer het nie. Ek het my profete na julle toe gestuur, maar julle het hulle doodgemaak net soos leeus ’n prooi verskeur. Israel, luister na wat die Here te sê het! Hy vra: Is Ek vir Israel so sleg dat dit vir hulle voel soos om in ’n woestyn te wees of in ’n pikdonker land? Hoekom sê my volk dan: ‘Uiteindelik is ons vry, ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’? Sê My, vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe is dit dan moontlik dat my mense My keer op keer vergeet? Julle is soos mense wat al die fyner kunsies ken om ander mans of vroue in die hande te kry. Julle is so goed met die verkeerde manier van doen dat hierdie mense by julle kan kom leer. Julle klere is gevlek met die bloed van onskuldige arm mense wat julle vermoor het. Julle kon nie eens sê dat julle hulle doodgemaak het omdat hulle by julle huise ingebreek het nie. Tog, ten spyte van alles sê julle: ‘Ons is onskuldig. Dit is regtig so, die Here is nie kwaad vir ons nie!’ Julle kan vir seker weet, Ek gaan julle swaar straf omdat julle doodgewoon maak of julle niks verkeerd gedoen het nie. Julle val lekker rond en dink vandag so en môre anders. Maar dit kan julle weet, julle vriende in Egipte sal julle in die steek laat net soos Assirië destyds gedoen het. Julle sal teleurgesteld van Egipte af terugkom, want Ek sal die mense op wie julle vertrou, afskryf. Dit sal nie met julle goed gaan nie, ook al help hulle julle.” Die Here vra: “As ’n man van sy vrou skei en sy trou met ’n ander man, mag hy haar terugvat? As hy dit sou doen, sou dit nie ’n slegte invloed op die land hê nie? Israel, jy het agter baie gode aangeloop net soos mense wat losbandig is en oral rondslaap. En nou wil jy weer na My toe terugkom. Kyk ’n bietjie om jou na die heuwels. Is daar enige plek in die hele land waar jy nie vreemde gode vereer het nie? Jy sit langs die pad soos iemand van losse sedes wat iemand soek om by te slaap. Jy is soos ’n rower in die woestyn wat wag om iemand te beroof. Jy het die land ’n slegte naam gegee met jou dislojale optrede. Jou doen en late is boos! Dit is hoekom die reën nie in die reëntyd gekom het nie. Jou houding is net so uitdagend soos ’n sekswerker s’n. Jy skaam jou nie eens oor wat jy gedoen het nie. En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, U is my vriend vandat ek sommer nog baie klein was. U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees en kwaad bly nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om alles te doen wat verkeerd is.” In die tyd toe Josia koning in Juda was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die noordelike koninkryk, Israel, gedoen het? Soos ’n persoon wat ontrou is aan sy huweliksmaat het Israel ander gode begin dien. Op elke hoogte en onder elke groen boom het hulle eer aan hierdie gode gebring. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer aan My lojaal sou wees. Dit het nie gebeur nie. Israel se ontroue suster Juda het alles gesien wat gebeur het. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, ’n skeibrief gegee en haar weggestuur het. Maar dit het geen indruk op Juda gemaak nie. Sy het ook in haar ontrou ander gode begin dien. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here. Toe het die Here vir my gesê: “Israel was baie dislojaal aan My, maar wat Juda gedoen het, is baie erger. Maar gaan uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: Israel, sê die Here, jy was dislojaal, maar kom terug na My toe. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek hou by my beloftes aan jou. Al wat Ek van jou verwag, is om te erken dat jy verkeerd gedoen het. Jy het teen My, wat die Here jou God is, gerebelleer. Jy het jou onder elke liewe koelteboom voor die gode neergebuig. Jy sal moet erken dat jy nie na My wou luister nie. Dit is wat Ek, die Here, wil hê julle moet hoor. Julle het koers verloor,” sê die Here, “maar kom terug na My toe. Julle behoort aan My. Wat Ek sal doen, is om hier een mens uit ’n stad en daar twee uit ’n familie te vat en julle na Jerusalem toe terug te bring. Ek sal vir julle nuwe leiers gee van wie Ek hou. Omdat hulle verstandig sal wees, sal hulle julle goed kan lei.” Die Here sê wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer uitroep: “O, daar is die ark wat wys dat daar ’n ooreenkoms tussen die Here en ons is” nie. Om die waarheid te sê, niemand sal eens daaraan dink, daaroor praat of dit eens mis nie. Wat nog ’n nuwe een maak! Dit sal die tyd wees wanneer mense na Jerusalem sal kyk en sê: “Dit is die stoel waarop die Here as koning sit.” Al die nasies sal hierheen kom om aan die Here eer te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense hulle eie kop volg nie. In hierdie selfde tyd sal die mense van Juda en Israel by een plek saamkom. Hulle sal dan saam uit die noorde terugkom na die land wat die Here vir hulle voorouers gegee het. Hy het gesê die land is vir altyd hulle s’n. “Ek het by Myself gedink: Ek sal daarvan hou om julle soos my eie kinders te behandel. Ek sou graag hierdie mooi land vir julle wou gee. Nie een van die nasies se grondgebied is naastenby so mooi soos hierdie land nie. Verder wou Ek baie graag hê dat julle vir My ‘Vader’ moes sê en nooit weer die rug vir My sou draai nie. Maar soos dit soms met getroude mense in ’n huwelik gaan waar een van hulle die ander een kul, so het julle ook met My gemaak, Israel,” sê die Here. Op die heuweltoppe hoor ’n mens uitroepe. Dit is die gehuil en gesoebat van Israel se mense. Hulle huil, want hulle besef dat hulle op ’n verkeerde koers is. Hulle het van die Here vergeet. Die Here sê: “My kinders, julle het My in die steek gelaat. Maar kom terug na My toe en Ek sal julle van julle skandelike optrede gesond maak.” Hierop het hulle geantwoord: “Ja, Here, ons wil terugkom, want U is die Here, ons God! Die lawaaierige manier waarop die gode op die heuwels en die berge vereer word, is ’n groot klugspul. Dit is net die Here ons God wat Israel kan help en vry maak. Van ons kinderjare af al het die skandelike afgod Baäl alles laat misluk waarvoor ons voorouers gewerk het. Dit sluit in hulle beeste, skape en selfs ook hulle kinders. Ons wil in die aarde sink van skaamte. Ons wil wegkruip van skaamte. Ons en ons voorouers het oor die jare verkeerde dinge gedoen waarvan die Here ons God nie hou nie. Die waarheid is dat ons ongehoorsaam aan die Here was.” “Israel, as julle besluit om weg te breek van wat julle nou doen, kom dan na My toe terug,” sê die Here. “As julle ontslae raak van die haatlike afgode, hoef julle mos nie meer so sonder rigting te wees nie. As julle ’n plegtige belofte aflê en my Naam daarvoor gebruik, moet julle die waarheid praat. Begin om reg te lewe. Sorg dat mense regverdig behandel word en doen wat reg is. As julle dit kan regkry, sal julle baie vir die nasies van die wêreld beteken. Hulle reaksie daarop sal wees om te kom en My te aanbid.” Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel te sê het: “Soos ’n mens ’n nuwe land ploeg en voorberei, so moet hulle harte nuut voorberei word. Goeie saad moet nie tussen dorings gesaai word nie. Kom staan voor My, die Here, met ’n hart en gedagtes wat skoon is. As dit nie gebeur nie, sal Ek verskriklik kwaad word. Ek word so kwaad vir al die verkeerde goed wat die mense van Jerusalem doen dat my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan doodkry nie. “Maak ’n aankondiging in Juda en Jerusalem en sê: Maak alarm sodat die hele land dit kan hoor! Skree hard en roep almal om bymekaar te kom en te kom wegkruip in die stede wat spesiaal sterk en veilig gemaak is. Stuur ’n sein na Jerusalem toe en waarsku hulle: Moenie wag nie, vlug vir julle lewe! Ek bring ’n groot ramp oor julle. Dit sal uit die noorde na julle toe aankom. Iemand wat nasies vernietig, is op pad na julle toe. Hy maak net soos ’n leeu wat uit sy lêplek opstaan en sy prooi bekruip. Hy sal groot skade aan die land doen en verwoesting in julle stede saai. Daar sal geen mense in die stede meer bly nie. Trek julle begrafnisklere aan en huil uit julle stukkende harte. Die Here is nog verskriklik kwaad vir ons.” Die Here sê: “In daardie tyd sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal verslae wees en die profete sal verstom staan.” Toe het ek gesê: “Ag Here, my God, U het die volk en Jerusalem mos mislei deur te sê dit sal met hulle goed gaan. Hulle lewe is dan nou in gevaar!” Dan sal die Here vir hierdie volk en vir die mense van Jerusalem sê: “’n Wind uit die woestyn wat so warm soos vuur is, waai oor die heuwels in die rigting van my volk. Dit is nie ’n ligte windjie waarmee ’n mens die kaf uit graan waai nie. Nee, Ek stuur ’n wind wat baie sterker as dit waai. Ondergang is julle voorland,” sê die Here. Ons vyand kom soos groot onweerswolke aan. Sy oorlogstuie kom aangejaag soos ’n orkaan. Sy perde is selfs vinniger as arende. Ons staan geen kans nie, dit is verby met ons! Jerusalem, was die kwaad uit julle elkeen se hart uit sodat julle gered kan word. Hoe lank wil julle nog rondloop met verkeerde gedagtes? Slegte nuus word uit Dan in die noorde en die berge van Efraim gehoor. Gaan waarsku die nasies in die omgewing en gee ook vir die mense van Jerusalem die volgende boodskap: “’n Mag wat lande en stede inneem, is uit ’n ver land op pad. Hulle beplan om die stede van Juda aan te val. Hulle omsingel Jerusalem net soos ’n mens sou maak om ’n graanland op te pas. Dit gebeur omdat my eie mense teen My in opstand gekom het,” sê die Here. “Julle is self die oorsaak dat hierdie slegte goed met julle gebeur. As straf kry julle van julle eie bitter medisyne.” Dit voel soos ’n mes wat in jou hart steek. Dit is vreeslik, ek kan die angs nie uitstaan nie! My hart klop verskriklik, ek kan dit nie rustig kry nie! Ek het gehoor hoe hulle op die trompette blaas om die aanval te begin. Ek het ook die vyand se oorlogskrete gehoor. Die een ramp na die ander het gekom totdat die land heeltemal verwoes was. In ’n oogwink is al wat ’n blyplek is, tot niet gemaak. Hoe lank gaan dit nog aanhou? Hoe lank gaan hulle nog aanhou om die trompette te blaas? Die Here sê: “My volk is dom. Hulle ken My nie. Hulle het nie verstand nie. Dit lyk nie of hulle enigiets verstaan nie. Hulle is net slim as dit by kwaaddoen kom. Van goeddoen weet hulle net mooi niks!” Ek het na die aarde gekyk en gesien dat dit woes en leeg was. Ek het ook na die hemel gekyk, en dit was sonder lig. Ek het na die berge en die heuwels gekyk, en hulle het gebewe. Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg. Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was. Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie. Die aarde sal huil asof iemand dood is. Die hemel sal ook donker word. Wat is die rede hiervoor? Ek het ’n besluit geneem en Ek gaan doen wat Ek besluit het om te doen. Ek sal nie van plan verander nie.” As die mense die geluid hoor van die vyand se magte wat nader kom, sal hulle uit vrees uit die stede vlug. Hulle sal in die bosse wegkruip of hardloop om skuiling in die berge te probeer kry. Al die stede sal leeg staan. Daar sal nie ’n mens in hulle oorbly nie. Wat probeer jy doen, Jerusalem? Jy is ’n stad wat kaal gestroop is. Hoekom probeer jy aandag trek deur ’n rooi rok aan te trek? Hoekom trek jy feesklere aan en behang jy jou met juwele? Hoekom kleur jy jou oë in met maskara? Jy maak jou verniet mooi. Jou bondgenote sal geen respek vir jou hê nie en sal jou doodmaak. Ek hoor ’n uitroep van pyn. Dit klink net soos ’n vrou wat haar eerste kind in die wêreld bring. Dit is die mense van Jerusalem wat so hyg om asem te kry. Hulle steek hulle hande in wanhoop uit en sê: “Ons voel ellendig. Ons is so kwesbaar voor die moordenaars!” Die Here sê: “Hardloop op en af in die strate. Kyk oral om julle rond. Soek by die bymekaarkomplekke in Jerusalem. As julle net een persoon kan kry wat eerlik is en reg probeer lewe, sal Ek die stad spaar. Hulle sweer vals, selfs al gebruik hulle die Naam van die Here om te maak of hulle die waarheid praat.” Here, U verwag van mense om eerlik te wees. U het u mense al ’n slag gestraf, maar dit het geen indruk op hulle gemaak nie. U het hulle verpletter, maar hulle wou nie leer nie. Hulle is hardkoppige mense, hulle weier om die verkeerde goed wat hulle doen te los en gehoorsaam aan U te wees. Eers het ek gedink: “Wat kan ’n mens nou ook eintlik van arm en eenvoudige mense verwag? Hulle weet nie van beter nie. Hulle besef nie regtig wat die Here van hulle verwag nie. Ek sal met die leiers gaan praat. Ek is seker hulle weet wat dit van ’n mens vra om die Here te dien en wat die vereistes is wat Hy stel.” Maar hulle was maar net soos die ander, sonder kennis en insig. Hulle het in opstand gekom en geweier om die Here te gehoorsaam. Daarom sal Juda se vyand hulle soos roofdiere aanval. Hulle is soos leeus wat in ’n bos lê en dan uitkom om mense dood te maak. Soos woestynwolwe wat ander verskeur. Soos ’n luiperd wat naby die stede lê en loer en enigiemand wat dit waag om uit te kom uitmekaarskeur. Dit sal gebeur omdat hulle so baie goed verkeerd doen en dislojaal aan die Here is. Die Here wil by Juda weet: “Hoe kan Ek julle vergewe? Selfs julle kinders het teen My in opstand gekom. Hulle beloof om getrou te wees aan gode wat nie eens regte gode is nie. Ek het nog altyd baie goed vir hulle gesorg. En hoe wys hulle hulle dankbaarheid? Hulle loop agter ander gode aan en is net soos mense wat tyd by bordele deurbring. Of hulle is soos goedversorgde perde wat altyd op soek is na ’n merrie, soos mans wat ’n buurman se vrou wil hê. Moet Ek hulle nie hieroor straf nie? Moet Ek nie wraak neem op hulle nie?” wil die Here weet. Die Here sê: “Juda is soos ’n wingerd. Ek stuur ’n vyand deur die wingerd om dit te verniel. Maar hulle moet nie die hele wingerd verwoes nie. Die lote wat nie aan My behoort nie, moet afgesny word. Die mense van Israel en Juda het My totaal en al verraai. Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie. Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’” Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.” Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie. Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.” Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie. As die mense sou vra waarom doen die Here hierdie dinge aan ons, moet julle antwoord: ‘Ons het die Here verraai en ander vreemde gode hier in ons eie land begin dien. Nou sal ons vreemde mense in ’n vreemde land moet dien.’” Gaan sê vir die mense van Israel in die noordelike koninkryk en Juda in die suidelike koninkryk: “Luister hier, julle dom en onverstandige volk. Julle het oë, maar julle sien niks. Julle ore hoor ook nie. Het julle geen respek vir My nie?” vra die Here. “Is julle nie bang vir My nie? Ek het met die sand die grense vir die see getrek. Die see mag nie by hierdie grense verbygaan nie. Die branders van die see kan maar hoog opswel, hulle sal nie daaroor kan slaan nie. Hulle kan maar hard dreun, hulle sal nog steeds nie verby die sand kan kom nie. Maar my volk is hardkoppig en opstandig. Hulle het die rug vir My gedraai en besluit om hulle eie kop te volg. Dit kom nooit by julle op om te sê: ‘Kom ons gee eer aan die Here wat vir ons die reën op die regte tyd gee’ of ‘Wat ook op die regte tyd vir ons ’n goeie oes gee’ nie. Dit is as gevolg van julle boosheid dat julle hierdie voorregte mis. Dit is al die verkeerde goed wat julle doen wat maak dat dit nie met julle goed gaan nie. Daar is slegte mense onder my volk wat voëls stilletjies soos ’n jagter bekruip. Hulle slagoffers is egter nie voëls nie, maar mense. Hulle huise is vol van al die bedrog wat hulle beplan om te pleeg. Dit is net soos ’n hok wat vol voëls is. En wat gebeur as gevolg daarvan? Hulle is nou belangrike en ryk mense. Hulle is vet en blink! Hulle hou ook nie op om slegte dinge te doen nie. Hulle sorg nie dat mense regverdig en billik behandel word nie. Hulle kyk ook nie dat weeskinders regverdig behandel word nie. Hulle dra ook nie die belange van die armes op die hart nie.” Die Here vra: “Verdien hulle dit nie dat Ek hulle hiervoor moet straf nie? Behoort Ek nie wraak te neem op mense soos hierdie nie? Dit is verskriklik en skokkend wat in die land gebeur: die profete praat nie die waarheid nie. Die godsdienstige leiers regeer die mense met ’n ysterhand. Die ergste van alles is dat my mense heeltemal tevrede daarmee is! Maar wat sal julle doen wanneer die einde kom?” Mense van Benjamin, maak dat julle wegkom uit Jerusalem uit! Maak alarm om die mense van Tekoa te waarsku! Stuur rookseine op van Bet-Kerem af! Sorg dat almal gewaarsku is: ’n Baie groot mag is uit die noorde uit op pad en sal groot skade aanrig. Jerusalem is soos ’n meisie wat mooi en fyn is. Maar die Here sê: “Ek sal haar verwoes.” Die vyandelike troepe sal die stad omsingel. Hulle sal die gebied rondom die stad onder hulleself verdeel en daar kamp opslaan. Dan sal die bevel gegee word: “Maak reg om die stad teen die middag aan te val!” Maar ander sal sê: “Dit is te laat om dit te doen, die dag is al amper verby. Kyk net hoe lank het die skaduwees al geword. Kom ons val liewer die stad in die nag aan en dan vernietig ons die plekke wat vir verdediging gebruik word.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Sny bome af en bou ’n oprit met hierdie bome teen die mure van Jerusalem. So kan die stad dan ingeneem word. Hierdie stad moet gestraf word, want baie mense in die stad het nie vryheid nie, maar word onderdruk. Jerusalem is soos ’n put wat aanhou vars water gee. Die mense van die stad hou net aan met geweld en die mishandeling van mense. Ek sien net altyd mense wat siek is en gewond in die stad lê. Dit is jou laaste waarskuwing, Jerusalem! As julle nie luister nie, sal Ek My van julle losmaak. Ek sal julle stad verwoes en geen mense sal daarin bly nie.” Die Here sê: “’n Wingerd word dikwels ’n tweede keer deurgewerk op soek na trossies druiwe wat dalk oorgeslaan is. Dieselfde sal met Israel gebeur. Party van die mense is reeds uit die land uit weggevat. Maar die mense wat in die land agtergebly het, sal weer aangeval word.” Met wie sal ek praat? Wie sal luister as ek ’n waarskuwing gee? Dit lyk of hulle ore toe is, want hulle luister nie na wat ek te sê het nie. Hulle maak grappies van wat die Here sê en neem nie sy woorde ernstig op nie. Ek kan aanvoel hoe kwaad die Here vir hulle moet wees. Ek kan my woede nie langer inhou nie. Die Here sê: “My woede gaan uitbars oor Jerusalem. Laat die kinders wat in die strate speel, mooi verstaan hoe kwaad Ek is, ook die jongmense, waar hulle ook al bymekaar is. Ek sal ook nie mans, vroue, oupas en oumas spaar nie. Die vyand sal kom en hierdie mense wat My so kwaad maak se huise vat. Hulle sal ook hulle landerye afvat en wat meer is, ook hulle vroue. Ek sal die burgers van hierdie land straf,” sê die Here. “Almal, van die eenvoudigste tot die vernaamste mense, probeer op ’n skelm manier ryk word. Selfs ook die profete en die priesters doen oneerlike dinge. Hulle probeer die probleme van die Here se mense met goedkoop raad oplos. Hulle maak of alles reg en goed is, terwyl dit eintlik baie sleg gaan. Is hulle enigsins skaam as hulle uitgevang word oor die gruwels wat hulle gedoen het? Glad nie! Hulle bloos nie eens omdat hulle skaam is nie. Daar is nie hoop vir hulle nie. Hulle sal ondergaan net soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Dit sal hulle einde wees wanneer Ek hulle die dag straf,” sê die Here. Die Here sê: “As julle by ’n plek kom waar julle belangrike besluite moet neem, moenie oorhaastig wees nie. Wag ’n bietjie en kyk eers wat mense vroeër gedoen het. Doen dan wat die beste is. Julle sal dan weet dat julle die regte ding gedoen het. Maar julle het gesê: ‘Dit is nie wat ons wil doen nie!’ Ek het wagte aangestel om julle te waarsku as daar gevaar is, maar julle het gesê: ‘Ons sal nie luister nie!’ Al die nasies moet luister na wat Ek sê. Kyk gerus wat met my volk gaan gebeur. Die aarde moet ook oplet wat gaan gebeur. Ek gaan my mense slegte dinge laat beleef. Hulle pluk net die vrugte van hulle eie planne. Hulle het hulle nie gesteur aan wat Ek te sê gehad het nie. My opdragte het hulle verwerp. Dit help net mooi niks dat hulle vir My wierook uit Skeba bring nie. Hulle kan die ander speserye wat uit ander ver lande kom, ook maar hou. Ek weier om offers te aanvaar wat hulle vir My bring om in my goeie boekies te kom. Dit bring vir My geen plesier nie.” Daarom sê die Here: “Ek sal stuikelblokke in die pad van hierdie volk bring waaroor hulle sal val. Ouers en hulle kinders sal hieroor val. Ook hulle bure en vriende sal sterf.” Die Here sê: “Kyk, ’n baie sterk mag kom uit die noorde na Israel toe. Die land waar hulle vandaan kom, is ver van hier af. Hulle is baie goed gewapen. Verder is hulle bekend vir hulle wreedheid. Hulle het geen genade vir niks en niemand nie. As hulle leër so optrek op hulle perde, klink dit soos die gedruis van die see. Hulle soldate is reg om jou te vernietig, Jerusalem.” Ons het stories gehoor oor hierdie wrede vyand. Ons is skoon lam van vrees vir hulle. Ons is baie benoud. Dit is soos die pyn wat ’n vrou ervaar as sy op die punt is om aan ’n kind geboorte te gee. Moenie waag om in die veld te stap nie! Bly weg van die paaie af! Die vyand is gewapen en terroriseer mense oral. My volk, trek die klere aan wat julle altyd dra as julle rou. Doen ook wat julle gewoonlik doen as julle rou oor iemand wat dood is. Gaan lê in die as en huil met ’n stukkende hart asof julle enigste kind dood is. Doen dit, want die vyand wat alles voor hom platvee, sal julle skielik aanval! Die Here sê: “Jeremia, Ek stel jou aan om my volk te toets net soos ’n mens die gehalte van metaal sou toets. Doen jou toetse en vind uit of dit wat hulle doen, goed is. Hulle is almal hardkoppig en opstandig. Hulle loop oral en kwaadpraat van mekaar. Blaas maar die vuur aan om dit so warm te kry as wat kan kom, dit sal nie help nie. ’n Mens kry dit nie reg om die afvalstowwe uit die metaal te kry nie.” Die mense van Israel sal die naam “weggooisilwer” kry, want die Here het hulle weggegooi. Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap vir Juda gegee. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die Here se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê: Judeërs, almal van julle wat na die tempel toe kom om die Here te kom dien, hoor wat sê die Here. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê: As julle ophou om al die verkeerde dinge te doen waarmee julle nou besig is, sal Ek julle in julle land laat bly. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die Here in Jerusalem is nie. Ek sal genadig wees as julle regtig ophou om die dinge te doen wat julle nou doen. Tree regverdig teenoor mekaar op. Moenie mense wat nie van Juda af kom sleg behandel en uitbuit nie. Ook nie weduwees en weeskinders nie. Ek sal ook nie so hard met julle wees as julle sal ophou om onskuldige mense in julle land te vermoor nie. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien. As julle gehoorsaam is aan My, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly. Ek het dit lank terug vir julle voorouers gegee. “Weet julle, die leuens wat julle glo dat julle nie sal swaarkry nie omdat die tempel hier is, gaan julle nêrens bring nie. Dink julle regtig julle kan maar voortgaan om te steel, mense te vermoor, julle huweliksmaat te bedrieg en te lieg? Asof dit nie al is nie, bring julle ook offers vir die god Baäl. Op die koop toe dien julle nog sommer ’n klomp ander gode wat julle vroeër nie eens geken het nie. Dan het julle die vermetelheid om hier in my tempel te kom staan en te sê: ‘Ons is veilig!’ Julle gaan hiervandaan af weg en hou maar net aan om hierdie afskuwelike dinge te doen! Sê My, dink julle dat my tempel ’n wegkruipplek vir skelms behoort te wees? Onthou, Ek sien wat julle doen,” sê die Here. “Gaan na Silo toe waar julle My eers aanbid het. Kyk wat het Ek met Silo gemaak omdat my volk Israel verkeerde dinge gedoen het.” Die Here sê: “Ek het aanhoudend met julle gepraat omdat julle hierdie verkeerde dinge gedoen het, maar julle wou nie na My luister nie. Ek het hard probeer om julle te laat besef dat julle nie reg doen nie, maar julle het My geïgnoreer. Silo bestaan nie meer nie, Ek het die plek verwoes. Julle het al julle hoop op my tempel geplaas. Dit gaan julle niks help nie, want Ek gaan my tempel hier in Jerusalem verwoes net soos Ek Silo tot niet gemaak het. Presies dieselfde gaan gebeur met hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Ek gaan toelaat dat ’n vyand julle uit julle land uit wegvat. Dit het met julle familie in die noordelike gebied, Israel, gebeur, nou is dit julle voorland.” Die Here sê: “Moenie meer vir Juda bid nie, Jeremia. Moet ook nie by My kom huil of vir hulle bid nie. Dit sal ook nie help dat jy namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Kan jy nie sien wat hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier. Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan. Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie kop gevolg en verkeerd gedoen. Op die ou einde het dit net al hoe slegter met hulle gegaan. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek gereeld boodskappers wat in my diens is, na hulle gestuur. Maar my volk wou nie na My luister nie. Hulle het hulle glad nie aan My gesteur nie. Hulle het net meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie. Mense van Jerusalem, sny julle hare af en gooi dit weg. Sing ’n treurlied op die kaal heuwels. Die Here het julle verwerp. Hy sal julle in die steek laat, want julle het Hom baie kwaad gemaak.” Die Here sê: “Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen waarvan Ek net mooi niks hou nie. Hulle het beelde van afgode in my tempel gesit. Deur dit te doen het hulle gemaak dat die tempel nie meer ’n spesiale plek vir die Here was nie. Hulle het ’n heidense offerplek gebou en dit Tofet genoem. Hulle het dit in die Hinnomlaagte gedoen. Daar het hulle hulle seuns en dogters met vuur verbrand. Ek het nooit opdrag gegee dat hulle sulke afgryslike goed moet doen nie. Dit is nie eens iets waaraan Ek sou dink nie. Daarom sê die Here: Pas op, die tyd kom dat hierdie plek nie meer Tofet of die Hinnomlaagte genoem sal word nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie plek vir al die grafte sal wees nie. Die lyke van my mense sal kos wees vir die aasvoëls en die wilde diere. Niemand sal eens oor wees om hulle te verwilder nie. Ek sal die vrolike sang en die lekker gelag van die mense in die strate van Jerusalem stil maak. Selfs in die stede van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.” Die Here sê: “In dié tyd sal die vyand die grafte van die mense wat in Jerusalem bly, oopmaak. Hulle sal geen graf uitlos nie. Hulle sal die geraamtes van die konings van Juda en die leiers uithaal. Hulle sal ook die geraamtes van die priesters, die profete van die Here en die bene van die gewone mense uit die grafte haal. Hierdie bene sal hulle uitpak onder die son, die maan en die sterre. Toe hierdie geraamtes nog geleef het, het hulle mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad en moeite gedoen om hulle te vereer. Die bene van die mense van Jerusalem sal nie weer begrawe word nie, maar sal soos mis bo-op die grond bly lê. Ek het die mense van hierdie bose nasie weggedryf na ander lande. Dié van hulle wat daar oorleef, sal verkies om liewer dood te wees as om te bly lewe. Dit is wat die Here sê wat sterker as alles en almal is!” “Jeremia, gaan sê vir die mense wat Ek, die Here, sê: Is dit nie so dat as ’n mens val, staan jy weer op nie? Of as jy agterkom dat jy op die verkeerde pad is, dat jy terugdraai nie? Vertel My, waarom hou hierdie mense aan om af te dwaal? Hoekom hou die mense van Jerusalem aan om My te bedrieg en weier hulle om na My toe terug te kom? Ek het fyn geluister na hulle praatjies. Hulle praat nie die waarheid nie. Nie eens een van hulle is spyt oor die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Niemand van hulle sê: ‘Watse verskriklike ding het ek aangevang!’ nie. Nee, hulle hou net aan voortstorm op hierdie verkeerde koers wat hulle gekies het, soos ’n perd wat in ’n geveg instorm. Die trekvoëls, soos die ooievaar, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël, weet as dit tyd is om na ’n ander omgewing te vlieg. Elke jaar wanneer die seisoen verander, kom hulle terug. Maar dit is nie so met my volk nie,” sê die Here. “Hulle weet kastig nie wat Ek van hulle verwag nie! “Hoe kan julle sê: ‘Ons het kennis, want ons het die voorskrifte van die Here’? Die skrywers wat hierdie voorskrifte neergeskryf het, het daaraan verander en dit verdraai. Hierdie kamstige slim skrywers sal in die skande kom, want hulle is verward en vasgevang in hulle eie manier van dink en doen. Hulle dink niks van wat Ek, die Here, sê nie. Is hulle dan nou so danig slim? Ek sal hulle vroue en hulle plase vir ander mense gee. Almal van hulle, of hulle nou klein of groot is, wil ryk word, al is dit nou ook deur ’n ander mens te bedrieg. Selfs die sogenaamde profete van die Here en die godsdienstige leiers doen oneerlike dinge. Hulle gee sommer goedkoop oplossings vir die probleme van my volk. Hulle maak of alles reg is as hulle sê ‘vrede, vrede’ terwyl dit allesbehalwe rustig en vreedsaam gaan. Is hulle miskien skaam oor al die afstootlike goed wat hulle doen? Nee, hulle bloos nie eens nie. Hulle het nie ’n idee wat dit is om skaam te wees nie. Hulle sal ondergaan soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Wanneer Ek hulle straf, sal dit klaarpraat wees met hulle,” sê die Here. Die Here het ook gesê: “Juda was soos ’n boord wat geen vrugte dra nie. Nutteloos! Hulle lewer niks goeds op nie. Hulle is soos ’n wingerd sonder druiwe of soos ’n vyeboom sonder vye. Selfs die blare is verdroog. Daarom sal hulle al die goeie dinge verloor wat Ek vir hulle gegee het.” Die volk van die Here vra: “Hoekom sal ons hier op ’n hoop sit en doodgaan? Party van die stede is sterker gebou om mense in oorlogtye teen die vyand te beskerm. Kom ons gaan in hierdie stede in, want dan gaan ons ten minste dood terwyl ons probeer het om terug te baklei. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet doodgaan. Die Here wou hê dat ons aan Hom lojaal moes wees, maar ons was nie. Ons het die toets vir lojaliteit gedruip en daarom sal ons sterf. Ons het gehoop vir ’n tyd van vrede, maar daar het niks van gekom nie. In plaas van ’n tyd waarin ons gehoop het dat dinge vir ons sou regkom, het iets skrikwekkends met ons gebeur. Ons kon alreeds uit Dan, wat op die noordelike grens is, die gerunnik van die vyand se perde hoor. Al die mense van die land het begin bewe toe hulle besef dat die vyand se leër op pad is. Die vyand se plan was om ons land en alles wat daarop is te kom verwoes. Ook elke stad van ons en die mense wat daarin bly.” Die Here sê: “Ek stuur die vyand se soldate soos giftige slange tussen julle in. Julle kan hulle nie betower nie. Net mooi niks wat julle ook al probeer doen om dit te keer, sal help nie. Die slange sal julle pik en julle sal doodgaan.” Jeremia sê: “My hartseer oorweldig my. Ek is siek van ontsteltenis. Hoor die benoude geroep van my mense. Dit weerklink deur die hele land: ‘Is die Here nie meer in Jerusalem nie? Is die koning ook nie meer in die stad nie?’” Hierop antwoord die Here: “Waarom buig hulle voor nuttelose afgode wat met die hand gemaak is? Hulle maak My sommer baie kwaad!” Die mense kla: “Ons het klaar geoes en die somer is al verby, maar ons is nog nie vrygemaak nie.” Jeremia sê: “My mense is gewond en voel baie pyn. Hulle pyn voel vir my asof dit my eie pyn is. Ek huil oor hulle. Ek voel so platgeslaan oor hulle toestand. Is daar nie medisyne in Gilead wat my mense se wonde gesond sal maak nie? Is daar nie ’n dokter wat hulle kan help nie? Hoekom kan iets nie gedoen word om my mense gesond en vry te maak nie?” Verder het Jeremia gesê: “Ag, ek wens my kop was soos ’n put wat vol water is en my oë soos ’n fontein vol trane. As dit maar so kon wees, sou ek dag en nag gehuil het oor al my mense wat doodgemaak is. Ek wens ek het ’n hut in die woestyn gehad. Wat sou ek nie gee om net daarheen te ontsnap en my mense agter te laat nie. Die mense van my volk is almal ontrou in hulle verhoudings. Hulle is ’n klomp verraaiers.” “My volk se leuens tref mense soos pyle. Hulle sorg nie dat die waarheid wen nie, maar die leuens. Die verkeerde goed wat hulle doen, word net al hoe erger. Hulle gee niks meer vir My om nie,” sê die Here. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of jou volksgenote enigsins vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar. Vriende lieg en bedrieg mekaar. ’n Mens kry net nie meer iemand wat die waarheid praat nie. Dit is al ’n tweede natuur vir hulle om nie die waarheid te praat nie. Baie van hulle is al so vasgevang in hulle valsheid dat hulle nie meer kan ophou om verkeerd te doen nie. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. So ver as wat hulle gaan, bedrieg hulle mense. Hierdie mense is veronderstel om my mense te wees, maar hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal hulle toets vir suiwerheid soos ’n mens met metaal maak wat jy deur ’n smeltoond laat gaan. Ek kan niks anders doen as my volk so verkeerd maak nie. Hulle tong is soos giftige pyle. Met hulle leuens bedrieg hulle ander mense. Hulle praat met mekaar asof hulle vriende is, maar in hulle hart maak hulle planne om van mekaar ontslae te raak. Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.” “Ek huil omdat daar nie meer weiding vir die diere teen die hange van die berge is nie. Die ou weivelde lê ook verwaarloos en niemand gebruik dit meer nie. My hart is stukkend daaroor. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste se gebulk nie. Selfs die voëls en die wilde diere het almal padgegee.” Die Here sê: “Ek sal Jerusalem soos ’n bouval maak. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die stede van Juda sal leegloop, want niemand sal meer daarin bly nie.” Ek vra toe: “Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom al hierdie dinge gebeur? Het U dit vir iemand gesê wat dit aan ander mense kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eens wil waag om daardeur te gaan nie?” Die Here het geantwoord: “Die stad lyk so omdat my mense nie my voorskrifte volg nie. Hulle het geweier om te lewe soos Ek gesê het hulle moet. Om die waarheid te sê, hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het gebuig voor die beelde van die god Baäl soos hulle by hulle voorouers geleer het.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Kyk, Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink. Ek sal hulle onder ’n klomp nasies versprei. Hulle sal vreemdelinge in hierdie lande wees, want nie hulle of hulle voorouers het hierdie nasies vroeër geken nie. Selfs daar sal hulle nie wegkom nie. Ek sal hulle vyande hulle laat agtervolg totdat daar net mooi niks van hulle oorbly nie.” Die Here het ook gesê: “Dink ’n bietjie na oor wat aan die gang is. Roep al die mense wat gewoonlik by begrafnisse huil, bymekaar. Ook dié wat treurige liedere kan sing. Hulle moet gou maak en met hulle gehuil begin. So sal hulle ons kan help om ook baie droewig te huil. Uit Jerusalem kan ’n mens die desperate gehuil van die mense van die stad hoor. Hulle roep uit: ‘Dit is klaar met ons! Ons is tot die grond toe verneder! Ons is uit die land gedryf en ons huise is platgeslaan.’” Die vroue van die land moet luister wat die Here te sê het. Hoor baie mooi wat Hy sê: “Julle moet julle dogters leer om hartseer te word. Verder moet die vroue mekaar leer om liedere te sing wat by dood en begrafnis sal pas. En as hulle vra hoekom hierdie soort liedere geleer moet word, is die antwoord: ‘Die dood het deur die venster in ons huis ingekom. Daar is nie meer kinders wat in die strate kan speel of jongmense wat by die stadspleine bymekaar kan kom nie.’” Jy moet sê, die Here sê: “Die lyke van mense sal oral op die oop velde lê soos mis. Dit sal ook lyk soos die bondels graan op die landerye nadat dit afgeoes is. Niemand sal dit bymekaarmaak nie. Net so sal daar absoluut niemand oor wees om die mense te begrawe nie.” Die Here sê: “’n Mens wat wysheid het, moet nie loop en spog met sy kennis nie. Net so moet iemand wat sterk is, nie grootpraat oor sy krag nie. Dieselfde geld vir mense wat ryk is; hulle moet nie dink hulle is beter as ander mense omdat hulle baie geld en goed het nie. As daar mense is wat tog wil spog, is daar net een goeie rede, en dit is dat hulle insig het en My ken. Ek is die Here wat altyd regverdig optree en sorg dat ander dit ook doen. Omdat Ek julle liefhet, sal Ek julle nie in die steek laat nie. Dit is wat Ek van julle verwag. Dit sal My baie bly maak,” sê die Here. Die Here sê: “Daar kom ’n tyd dat Ek al die mense wat net uiterlik besny is, sal straf. Ek kyk na mense se gesindheid en stel nie in die uiterlike tekens alleen belang nie. Al Israel se bure is sulke mense wat Ek sal straf, die mense van Egipte, Edom, Amnon en Moab. Natuurlik die mense van Juda ook! Geeneen van hierdie buurnasies van Juda het die uiterlike tekens aan hulle liggaam om te bewys dat hulle deel van die mense van die Here is nie. Die mense van Juda se doen en late wys nie dat hulle aan die Here behoort nie. Hulle is ontrou aan die Here.” Israel, luister na wat die Here vir julle te sê het. Hy sê: “Moenie die manier hoe die ander nasies dinge doen, aanleer nie. Julle moet byvoorbeeld nie bang wees vir die tekens wat hulle in die sterre sien nie. Dit maak die mense van hierdie nasies baie bang. Die godsdiens van hierdie volke maak nie mooi sin nie. Hulle kap ’n boom in ’n bos af en laat ’n skrynwerker daarvan ’n beeld maak. Daarna versier hulle die beeld met goud en silwer. Hierdie beeld word dan vasgespyker sodat dit nie omval nie. Die gode wat so gemaak word, is net so hulpeloos soos ’n voëlverskrikker in ’n groentetuin. Die beeld kan nie praat of loop nie. Dit moet van die een plek na ’n ander rondgedra word. Julle moet nie vir sulke gode bang wees nie. Hulle kan julle op geen manier kwaad aandoen nie. Maar julle moet ook besef hulle kan niks goeds doen nie.” Here, daar is niemand wat met U vergelyk kan word nie! U is baie sterk en U het baie invloed. As mense u Naam hoor, dink hulle U het baie mag en krag! Is daar enige mense wat nie besef dat U gerespekteer moet word nie? U is dan die Koning van volke. Dit is net U wat hierdie eer verdien! Daar is niemand wat so slim en verstandig soos U is nie, nie in enige land van die wêreld of onder mense op die aarde nie. Mense wat afgode vereer, is dom en verspot. Afgode wat uit hout gemaak is, kan ’n mens mos niks leer nie! Dit maak geen verskil dat die gode versier is met die fynste silwer uit Tarsis of suiwer goud uit Ufas nie, dit bly maar iets wat ambagsmense gemaak het. Hulle trek hierdie gode ook klere aan wat uit baie duur materiaal gemaak is; tog bly dit steeds die werk van kunstige mense. Maar die Here is die enigste ware God. Hy is die God wat lewe en sal vir altyd Koning bly! As Hy kwaad is, bewe die aarde van vrees. Die nasies kan nie weerstand bied teen sy woede nie. Julle moet vir die mense wat afgode vereer, sê: “Hierdie kastige gode het nie die hemel en die aarde gemaak nie. Hulle sal van die aarde af verdwyn.” Dit is die Here wat deur sy krag die aarde gemaak het. Met sy kennis het Hy gesorg dat die aarde vas staan en dat alles op die aarde op die plek is waar dit hoort. Dit is ook Hy wat beplan het dat die hemel so oopgesprei sal lê. As Hy praat, klink dit soos die gedreun van donderweer in die hemel. Dit is ook Hy wat die mis laat opstyg uit die aarde. Dit voel vir ’n mens of dit van iewers ver op die aarde af moet kom. Die Here stuur ook die weerlig saam met die reën. Hy stuur ook die wind van ’n plek af wat iets soos ’n stoorkamer moet wees. As mense nou met Hom vergelyk word, lyk hulle maar dom. Hulle weet net mooi niks! Die goudsmede wat die beelde maak, kom in die verleentheid, want die afgodsbeelde is vals. Hulle het nie krag nie. Die afgode is net mooi niks werd nie. Hulle is niks anders as leuens nie. Die dag wanneer die Here besluit om met hulle af te reken, sal niks van hulle oorbly nie. Maar die God van Israel is nie soos hierdie afgode nie! Hy het alles gemaak, ook vir Israel. Israel is die volk wat Hy spesiaal uitgesoek het om aan Hom te behoort. Sy Naam is Here en Hy is sterker as alles en almal! Die mense van Jerusalem is deur die vyand omsingel. “Maak julle besittings bymekaar,” sê die Here. “Neem kennis, Ek gaan julle nou uit julle land laat uitgooi. Ek gaan dit vir julle baie moeilik maak, julle sal die druk voel.” Die mense in Jerusalem het gekla: “Dit gaan ellendig met ons, ons is erg seergemaak! Ons kan maar net huil oor ons siek toestand. Ons het gedink: Ja, dit is ’n groot lyding hierdie, maar ons sal dit kan vat en deursien. Ons huise is vernietig. Dit wat ons nog vastigheid gegee het, is tot niet. Ons kinders is van ons af weggevat. Hulle sal nie weer terugkom en seker maak dat ons ’n toekoms het nie.” Ek het geantwoord: “Ons leiers is onnosel. Dit maak nie vir hulle saak wat die Here wil hê hulle moet doen nie. Dit is hoekom dit sleg gaan. Dit is ook hoekom ons mense oraloor verstrooi is. Hoor julle, dit is die dreungeluid van die vyand se leërs wat uit die noorde op pad is. Hulle sal al die stede van Juda verwoes. Die stede sal ’n lêplek vir die jakkalse word.” Ek weet, Here, ’n mens hou nie jou lewe in jou eie hande nie. Niemand het beheer oor wat in die lewe met hom gaan gebeur nie. Here, help ons reg, maar werk sag met ons. As U ons swaar straf as U baie kwaad is, sal daar niks van ons oorbly nie. Haal u woede liewer op ons vyande uit. Hulle steur hulle mos nie aan U nie. Hulle het ook nie vir U respek nie. Hierdie vyand het u volk Israel totaal uitgeroei en die land verwoes agtergelaat. Die Here het weer met Jeremia gepraat en gesê: “Herinner die mense van Juda en Jerusalem aan die voorwaardes van die ooreenkoms tussen My en hulle. Sê vir hulle: Die Here, die God van Israel sê: Dit sal sleg gaan met mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van die ooreenkoms tussen My en hulle nie. Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek sê julle moet doen. As julle dit regkry, sal julle my eie mense wees. Van my kant af sal Ek julle God wees. So sou Ek dan my belofte hou wat Ek aan julle voorouers met ’n plegtige belofte gemaak het. Ek het gesê Ek sal hulle ’n land gee waar die melk en heuning in strome loop. Dit is die land waar julle nou bly.” Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!” Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir die mense in Juda se stede en in Jerusalem se strate: Onthou die voorskrifte van die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het en kom hulle na! Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle ernstig gewaarsku om aan My gehoorsaam te wees. Ek het dit gereeld gedoen en doen dit nog steeds. Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eens na my waarskuwing luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en dinge gedoen wat verkeerd was. Die ooreenkoms tussen My en hulle was dat hulle gestraf sou word as hulle ongehoorsaam is. Daarom, omdat hulle nie my opdragte gehoorsaam het nie, sal Ek hierdie oordele oor hulle bring.” Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom. Hulle doen nou dieselfde verkeerde dinge as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle wil nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Verder het hulle ook afgode begin vereer. Israel en Juda het nie die ooreenkoms nagekom wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Omdat hulle so maak,” sê die Here, “sal ’n ramp hulle tref. Daar is nie ’n manier dat hulle dit sal vryspring nie. Al bid hulle dat Ek hulle moet help, Ek sal nie na hulle luister nie. Die mense van die stede van Juda en Jerusalem sal dan hulle afgode smeek om hulle te help. Hulle sal selfs wierook vir die afgode brand om hulle guns te wen. Die afgode sal hulle nie uit die moeilikheid help as die ramp hulle tref nie. Juda, julle het net soveel afgode as wat julle stede het. Julle het ook op baie plekke klippe opgestapel waarop julle wierook vir die skandelike afgod Baäl kan brand. Daar was amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is.” Die Here het vir Jeremia gesê: “Jeremia, jy moenie meer vir die mense van Juda en Jerusalem bid nie. Dit sal nie help dat jy by My pleit of bid nie, want Ek sal nie luister as hulle in die moeilikheid is en My roep om hulle te help nie. Ek is baie lief vir my mense. Maar watter reg het hulle om in die tempel te kom as hulle hulle tevore hier so sleg gedra het? Dink hulle enigsins dat hulle met beloftes en offers die ramp kan keer? Eintlik geniet hulle dit om verkeerd te doen!” Die Here het gesê: “Daar was ’n tyd toe Ek julle ’n pragtige groen olyfboom genoem het. Mooi om te sien en vol goeie vrugte. Maar in ’n groot storm sal die weerlig die boom brand en al die takke verskroei. Die Here is sterker as alles en almal. Hy het Israel en Juda soos hierdie olyfboom geplant. Hy sal sorg dat hulle vernietig word. Die mense van Israel en Juda het slegte dinge gedoen. Hulle het My kwaad gemaak, want hulle het wierook vir Baäl gebrand om in sy goeie boekies te kom.” Dit was eers toe die Here my dit vertel het dat ek besef het my vyande was besig om planne teen my te maak. Ek was soos ’n lam wat op pad was na die slagpale om geslag te word, salig onbewus van wat aan die gang was. Hulle was van plan om my dood te maak. Hulle het gesê: “Kom ons raak ontslae van hierdie man, dan is ons ook ontslae van die dinge wat hy sê! Kom ons maak hom dood, dan sal niemand ooit onthou dat hy geleef het nie!” Here, U is sterker as alles en almal. U tree altyd regverdig op. Ja, Here, U weet presies wat binne-in ’n mens aangaan. U weet selfs wat ons dink. Ek wil graag sien wat gebeur as U wraak neem op my vyande. Ek het my saak vir U gegee om te hanteer. Die Here sê oor die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia. Dit is omdat jy namens My praat. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek gaan hulle straf! Die jongmans sal in gevegte met ’n vyand doodgemaak word. Hulle kinders sal van die honger doodgaan. Nie eens een van hulle sal bly lewe nie. Ek sal die mense van Anatot baie slegte dinge laat ervaar wanneer Ek hulle straf. Ek het reeds besluit wanneer dit sal wees.” Here, U behandel my altyd regverdig as ek my saak aan U verduidelik. Maar nou het ek ’n paar vrae wat ek wil vra: Hoekom gaan dit so goed met slegte mense? Hoekom leef oneerlike mense asof niks hulle kan pla nie? U het hulle lewe gegee. Hulle is soos bome wat geplant is. Die bome groei baie goed, want hulle wortels is diep in die grond geanker. Op die oog af lyk dit of dit baie goed met hierdie slegte mense gaan. Hulle sê graag mooi dinge oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie. Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is en U weet presies wat ek dink. Sleep hierdie mense weg soos ’n mens met skape sou maak wat geslag gaan word. Hou ’n oog oor hulle totdat dit tyd is om hulle te slag. Hoe lank moet hierdie land nog in so ’n droewige toestand bly? Selfs die gras op elke stukkie veld het verdroog. Die diere en die voëls het ook verdwyn. En wat is die oorsaak van alles? Die verkeerde dinge wat die mense van die land doen. En tog sê hulle: “Die Here sal niks daaromtrent doen nie!” Toe het die Here my geantwoord: “Jeremia, jy sal nog moeiliker dinge deurmaak. As jy moeg word wanneer jy resies hardloop teen mense, hoe sal jy ooit teen perde kan kompeteer? As jy struikel en val in ’n land waar daar eintlik niks in jou pad is nie, wat sal jy doen as jy in die digte bosse by die Jordaan beland? Selfs jou broers, wat jou naby familie is, het jou verraai. Hulle is daarop uit om jou kwaad aan te doen. Moenie hulle enigsins vertrou nie, selfs nie as hulle vriendelike praatjies met jou maak nie.” Die Here sê: “Ek het my volk aan hulle eie genade oorgelaat. Hulle was baie spesiaal vir My. Maar al het Ek hulle liefgehad, het Ek hulle aan hulle vyande oorgegee. My volk het net soos ’n leeu gemaak wat in ’n bos is. Hulle het vir My gebrul. Hulle het ’n dreigende houding gehad. Daarom het Ek nie ooghare vir hulle nie. Israel was my volk wat Ek gekies het. My volk is soos ’n voël wat deur ander roofvoëls omring is. Hulle val hulle prooi van alle kante af aan. Israel se vyande is soos roofdiere wat die karkas kom skoon vreet. Hulle sal op my mense toesak soos hierdie roofdiere. Baie vyandige konings het my volk se land vertrap. Hulle is soos herders van skape wat ’n wingerd erg beskadig. Hulle vertrap die landerye soos hulle deur trek. Hulle beskadig die landerye so erg dat van die vrugbaarste grond soos ’n verlate wildernis lyk as hulle daarmee klaar is. Hulle het die land soos ’n verlate woestyngebied gemaak. Dit is of die grond van smart uitroep oor die toestand waarin dit is. Die hele land is verlate, maar niemand gee juis daarvoor om nie. Die vernietigende leërs van die vyand het oor die kaal heuwels van die woestyn gekom om die land te kom plunder. Die Here stuur ’n oorlog wat die hele land en sy mense, van hoek tot kant, sal tref. Niemand sal wegkom nie! Die volk het koring gesaai, maar daar sal net dorings wees om te oes. Van al hulle harde werk sal daar niks kom nie. Wanneer hulle die oes bymekaar begin maak, sal hulle verleë staan. Die oes sal ’n mislukking wees omdat Ek, die Here, vir hulle kwaad is.” Die Here het gesê: “Die buurvolke is sleg. Hulle is gulsig en probeer die land wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal sorg dat ander volke hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Maar Juda sal Ek uit hulle mag red. As Ek al hierdie volke uit hulle lande laat wegvat het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land toe laat terugkom waar al die goed is wat hulle besit. Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar daar is voorwaardes wat hulle moet nakom. Daar word van hulle verwag om so vinnig moontlik al die gewoontes en gebruike van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer dat as hulle ’n plegtige belofte maak, hulle moet sê: ‘so waar as die Here leef.’ Hulle moet dit doen om te bevestig dat hulle die waarheid praat. Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer. As enige van hierdie volke nie wil saamwerk nie, sal Ek hulle wortel en tak laat uitroei!” Die Here het dit gesê. Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n stuk linne en bind dit om jou heupe vas. Jy moenie die lap was nie.” Ek het toe die lap gaan koop soos die Here vir my gesê het, en dit om my heupe vasgebind. Toe het die Here weer met my gepraat en gesê: “Vat nou die linnelap wat jy dra en gaan na die Eufraat toe. Steek die lap daar in ’n skeur in een van die rotse weg.” Ek het toe na die Eufraat toe gegaan en die lap weggesteek presies soos die Here gesê het ek moes doen. Na ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die lap uit die opening in die rots waar Ek gesê het jy dit moet wegsteek.” Ek het toe teruggegaan na die Eufraat. Toe ek daar kom, het ek die lap uit die skeur in die rots gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al begin stukkend gaan. ’n Mens sou dit nie meer kon gebruik nie. Toe het die Here vir my begin verduidelik wat dit alles beteken. Hy het gesê: “Hierdie stuk lap het uitmekaar begin val. Ek sal die hooghartige houding van Juda en Jerusalem net so laat verdwyn soos met die lap gebeur. Hierdie slegte volk sal net so nutteloos word soos hierdie stuk lap. ’n Mens kan dit nie meer gebruik nie. Dit sal gebeur omdat hulle weier om na My te luister. Hulle is baie hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle vereer en dien ander gode. Soos hierdie linnelap om ’n mens se heupe span, so wou Ek gehad het dat Juda en Israel aan My gebind moes wees. My wens was dat hulle my volk moes wees. Hulle moes so lewe dat mense aan My eer bring en mooi dinge van My sê. Dit moes vir My ’n eer gewees het om aan hulle verbind te wees. Maar hulle was ongehoorsaam.” “Praat met hulle en gee hulle hierdie boodskap. Die Here, die God van Israel, sê: ‘Al die wynkruike moet vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik weet ons dat ons al die kruike vol wyn moet maak.’ Dan moet jy vir hulle sê: Nee, dít is wat die Here bedoel. Hy sê: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou regeer en wat deel is van koning Dawid se familie. Verder ook nog die godsdienstige leiers, die profete van die Here en die gewone mense wat in Jerusalem bly. Soos kruike wat breek as hulle teen mekaar gestamp word, so sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, ouers en kinders almal saam. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek voel niks vir hulle nie, Ek sal hulle vernietig.” Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, dit is die Here wat met julle gepraat het. Gee aan die Here julle God eer voordat dit te laat is. Respekteer Hom voordat Hy dit vir julle donker maak. As dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit net al hoe donkerder maak totdat dit uiteindelik stikdonker is. Maar as julle aanhou ongehoorsaam bly, sal ek eenkant gaan staan en huil oor julle so verwaand is. Ek sal bitterlik oor julle huil. Julle is nou wel die Here se volk, maar julle sal uit julle eie land na ander lande weggevat word. Die Here het vir my gesê: “Sê vir die koning en die koningin-moeder: Klim van julle troon af, want julle sal nie langer die kroon dra wat wys dat julle regeer nie. Die mense van die stede in die Negev is reeds deur die vyand vasgekeer. Niemand sal hulle meer kan help ontsnap nie. Die mense van Juda sal as gevangenes weggevat word uit hulle land na ander lande toe. Jerusalem, maak julle oë oop, dan sal julle die vyand uit die noorde sien aankom. Wat het van Juda se inwoners geword? Jy was tog so trots op hulle. Was jy nie veronderstel om mooi na hulle te kyk nie? Hoe sal julle voel as Ek die mense wat vroeër julle vriende en bondgenote was, nou toelaat om julle te oorheers? Julle sal van pyn krul soos ’n vrou wat geboorte gee! Julle wonder seker hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die antwoord is: Julle word soos ’n vrou deur die vyand misbruik en verneder omdat julle so baie dinge verkeerd doen. “’n Mens wat ’n donker vel het, kan dit nie verander nie. Net so kan ’n luiperd ook nie sy kolle verander nie. Dink julle miskien dat julle skielik goeie dinge kan begin doen nadat julle so lank reeds daaraan gewoond was om verkeerde goed te doen?” Die Here sê: “Ek sal julle oraloor waai, net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei. Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die Here. “Dit is wat julle verdien, want julle het so gelewe asof julle vergeet het dat Ek bestaan. Om afgode te dien is om julleself te bedrieg. Hulle is net ’n bedrogspul. En tog het julle verkies om hulle te vertrou en nie vir My nie. Ek sal julle verneder soos ’n mens iemand kaal laat staan voor ander mense. Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op die hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Mense van Jerusalem, julle kan dit vir seker weet, julle gaan nog baie swaarkry! Hoe lank sal dit vat voordat julle eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?” Die Here het vir Jeremia die volgende in verband met die groot droogte gesê: “Die mense van Juda treur. In die stad gaan daar feitlik niks aan as dit by besigheid kom nie. Die mense sit op die grond om te wys dat hulle rou. In Jerusalem hoor jy mense wat om hulp roep. Die stad se belangrike mense stuur hulle werkers om te gaan water haal, maar die putte is droog. Hulle kom met leë houers van die putte af terug. Dronkgeslaan en moedeloos oor wat aan die gang is, het hulle hulle kop toegemaak. Omdat dit nie gereën het nie, het die grond van die droogte gebars. Die boere het van pure moedeloosheid met hulle hande in die hare gesit. Selfs die wildsbokooi gooi haar lammetjie weg omdat daar nie groen gras is om te eet nie. Die wildedonkies staan op die kaal bulte en snuif die lug soos die jakkalse maak as hulle dors is. Van die honger raak hulle oë dof, want daar is niks meer gras om te eet nie.” Die mense het gereageer en gesê: “Here, al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, het ons nou ingehaal. Ons het nie reg teenoor U gedoen nie. Ons was al soveel keer dislojaal teenoor U. Maar al is dit so, Here, help ons ter wille van u eie reputasie. Here, U is Israel se enigste hoop. As ’n krisis opduik, help U u mense uit die moeilikheid. Hoekom is U soos ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat op reis is deur die land en net een nag oorslaap? Here, hoekom tree U op soos iemand wat ’n bietjie deurmekaar is? Hoekom maak U asof U ons nie kan help nie? U is mos by ons en ons is mos u eie mense, ons behoort aan U. Moet ons tog nie nou in die steek laat nie!” Die Here het sy volk geantwoord en gesê: “Julle het daarvan gehou om van My af te dwaal. Julle kon julleself nie in toom hou nie. Daarom dink Ek nie langer aan julle as my mense nie. Ek sal al die slegte dinge wat julle gedoen het, onthou. Ek sal julle straf vir al die dinge wat julle verkeerd gedoen het.” Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie. Al bly hulle ook sonder kos ter wille van My, sal Ek My nie aan hulle steur nie. En al bring hulle ook allerhande soorte offers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.” Maar toe sê ek: “Here, daar is niemand wat so magtig soos U is nie. Hulle profete wat ook sê dat U hulle gestuur het, sê vir hulle: ‘Dit gaan goed. Moenie julle steur aan praatjies oor oorlog of hongersnood nie. Die Here sal sorg dat dit bly goed gaan in die land.’” Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete praat namens My, maar hulle praat nie die waarheid nie. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek gesê hulle moet vir julle ’n boodskap gee. Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Hulle maak of dit wat hulle te sê het, nuwe inligting is wat hulle gesien het of aan hulle bekendgemaak is. Dit is ’n spul leuens wat hulle vir julle aandra, maar hulle vertel dit vir julle asof dit van die Here af kom.” Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan. Die mense vir wie hierdie valse profete gelieg het, sal oral in die strate van Jerusalem dood lê. Mans, vroue en kinders sal die slagoffers wees van hongersnood of oorlog. Daar sal niemand oor wees om hulle te begrawe nie. Hulle moet self die skuld dra dat dit met hulle gebeur het, want hulle het slegte goed gedoen. Jeremia, vertel vir hulle wat jy voel oor wat gebeur. Sê vir hulle: Dag en nag loop die trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. My volk wat soos ’n jongmeisie is, is swaar gewond en besig om dood te gaan. As ek in die veld kom, sien ek oral net lyke lê. Hulle is afgemaai deur die vyand. Loop ek in die strate van die stad, is al wat ek sien, mense wat van die honger dood is. Die sogenaamde boodskappers van die Here en die priesters gaan oral in die land aan met hulle werk, maar hulle weet nie regtig wat hulle doen nie.” Here, wil U nou heeltemal niks met Juda te doen hê nie? Haat U die mense van Jerusalem? Waarom het U ons so erg gewond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het so gehoop dat alles weer rustig en voorspoedig sou gaan, maar daar het niks van gekom nie. Ons het gehoop dat daar vir ons kans sou wees om weer reg te kom, maar in plaas daarvan het verskriklike dinge met ons gebeur. Here, ons erken dat ons verkeerde dinge gedoen het. So ook ons voorouers. Ons het nie die dinge gedoen wat U wou hê ons moes doen nie. Ek vra dat U ook ter wille van Uself ons nie van U af sal wegstoot nie. Jerusalem is u blyplek wat baie spesiaal is. Moenie dat daar skade aan die stad gedoen word nie. U is ons God en ons is u mense. Moenie die ooreenkoms tussen U en ons verbreek nie. Kan enige van die danige afgode van die nasies vir ons reën gee? Laat die hemel sommer self reën op die aarde val? Nee, dit kom van U af, o Here, ons God. Dit is net U wat sulke dinge kan doen. Ons sal met afwagting bly hoop dat U ons sal help. Die Here het vir my gesê: “Selfs al het Moses en Samuel voor My gestaan om hierdie mense se saak te stel, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Raak ontslae van hulle, Ek wil hulle nie sien nie. As hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die Here sê: Dié van julle wat moet doodgaan, sal doodgaan. Dié van julle wat in ’n oorlog moet gaan veg, sal gaan veg op die slagveld. Dié wat honger moet ly, sal honger ly. Ander van julle wat deur julle vyand uit julle land weggevat moet word, sal weggevat word.” Die Here sê: “Ek sal hulle op vier maniere straf. Hulle sal met ’n wapen doodgemaak word en honde sal hulle wegsleep. Dan sal die aasvoëls en die wilde diere dit wat van hulle oorgebly het, opvreet. Koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, het dinge in Jerusalem gedoen waarvan Ek niks gehou het nie. Omdat hy hierdie dinge gedoen het, sal Juda ly. Ek sal van my volk ’n voorbeeld maak. Wat met hulle gebeur, sal al die volke op die aarde skok.” Die Here vra: “Wie sal julle jammer kry, inwoners van Jerusalem? Wie sal oor julle huil? Wie sal nog enigsins die moeite doen om te vra hoe dit met julle gaan? Julle het My in die steek gelaat. Julle steur julle al hoe minder aan My,” sê die Here. “Daarom sal Ek sorg dat daar niks van julle oorbly nie. Ek is moeg daarvan om julle altyd nog ’n kans te gee. Uit elke stad in die land sal Ek julle verstrooi soos ’n mens met kaf op die dorsvloer maak. Ek sal julle baie hartseer maak deur wat vir julle na aan julle hart lê, weg te vat. Ek sal my volk laat ondergaan omdat hulle botweg weier om op te hou met die verkeerde dinge wat hulle doen. Daar sal nou meer weduwees wees as wat daar sand by die see is. So teen die middag se kant sal ’n aanvaller kom en die ma’s van die jongmans oorval. Ek sal maak dat angs en vrees hulle skielik beetpak. ’n Ma wat sewe kinders gehad het, sal flou word en na haar asem snak as haar kinders sterf. Dit sal vir haar voel of die son helder oordag gesak het. Sy is nou sonder enige kinders en wat ’n vernedering is dit nie! Die mense wat so ver alles oorleef het, sal Ek in die hande van die vyand gee,” sê die Here. Ek het gesê: “Dit gaan sleg met my! Hoekom het Ma my ooit in die wêreld gebring? Ek is altyd aan die stry en baklei met almal in die land. Al het ek niks uitgeleen nie en al het ek niks by iemand anders geleen nie, wens almal my slegte dinge toe.” Die Here het geantwoord: “Dit sal met jou goed gaan, Jeremia. Jou vyande sal nog vir jou kom vra om namens hulle om hulp te smeek as moeilike en swaar tye kom. Ek sal jou so sterk maak soos ’n stuk yster uit die noorde of ’n stuk koper wat nie gebreek kan word nie.” Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Julle het oral in die land baie verkeerde dinge gedoen. Omdat dit so is, Israel, sal Ek al julle rykdom en julle besittings as buit vir julle vyand gee. Ek sal dat julle vyande julle wegvat na ’n land wat julle nie ken nie. My woede is so groot, dit is soos ’n vuur wat brand. Dit sal nooit ophou brand nie.” Toe bid ek: “Here, U weet alles. Dink tog aan my en help my. Straf die mense wat my vervolg. Moenie toelaat dat hulle my doodmaak nie! Onthou asseblief dat ek verneder word omdat Ek vir U werk. Here, toe U gepraat het, het ek mooi geluister en elke woord ingeneem. Wat ek gehoor het, het my baie bly gemaak. Here, U is sterker as alles en almal. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort. Ek was nie deel van die groep mense wat gespot het nie. Ek het my eenkant gehou, want my lewe het nou aan U behoort. Al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het my baie kwaad gemaak. Waarom hou my swaarkry nie op nie? Waarom word my wonde nie gesond nie? Soms voel dit vir my of ek nie seker kan wees dat U my sal help nie. Dit is soos ’n stroompie waarvan jy nie altyd seker is dat daar water in sal wees nie.” Die Here sê toe: “As jy doen wat Ek wil hê jy moet doen, sal Ek jou weer gebruik soos vroeër. As jy ophou om onverantwoordelike dinge te sê, kan jy weer namens My praat. Jy moet sorg dat ander mense jou voorbeeld volg, nie jy hulle voorbeeld nie. Hierdie mense sal teen jou baklei asof hulle besig is met ’n oorlog. Moenie bekommerd wees nie, Ek sal jou so sterk soos ’n kopermuur maak. Hulle sal jou nie wen nie. Ek sal jou beskerm en jou red,” sê die Here. “Ek sal jou uit die mag van hierdie slegte mense red. Ek sal jou teen hulle wreedheid beskerm.” Die Here het weer vir my gesê: “Jeremia, jy moenie trou nie. Jy moet ook nie kinders hê in hierdie land nie. Laat Ek jou vertel wat met die kinders wat in hierdie land gebore word en met hulle ouers gaan gebeur: hulle sal van verskriklike siektes doodgaan. Daar sal niemand wees wat sal huil omdat hulle dood is nie. Niemand sal hulle ook begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf of van die honger doodgaan. Hulle lyke sal deur aasvoëls en roofdiere gevreet word.” Die Here het ook vir my gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar mense besig is om te treur oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of sê dat jy jammer is oor wat gebeur het nie. Ek sorg nie meer dat dit met my mense goed gaan nie. Om die waarheid te sê, Ek was altyd baie lojaal aan hulle omdat Ek vir hulle lief was. Ek sal nie langer lojaal wees of vir hulle jammer wees nie. Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal nie maak soos hulle altyd maak as hulle oor iemand treur nie. Hulle sal nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afsny omdat hulle hartseer is nie. Niemand sal ook eens saam met ’n mens wie se vriend of familielid dood is, ’n stukkie brood eet of iets drink om die persoon te troos nie. Dit maak nie eens saak of dit so ’n persoon se ouers is wat dood is nie. Jeremia, jy moet ook nie na ’n huis gaan waar hulle partytjie hou nie. Moet glad nie saam met hulle eet of drink nie, want,” so sê die Here, die God van Israel, wat sterker as alles en almal is, “voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek sal sorg dat al die gesing en gelag in hierdie land ophou. Die vrolike stemme van bruide en bruidegomme sal ook stil word. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here besluit dat sulke slegte dinge met ons moet gebeur? Wat het ons nou eintlik gedoen dat daar op so ’n slegte manier met ons gewerk word? Wat het ons sodanig gedoen waarvan die Here wat ons God is, nie hou nie?’ Dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het skoon van My vergeet. Hulle was ongehoorsaam. Hulle het hulle nie gesteur aan die dinge wat Ek gesê het hulle moet doen of nie mag doen nie. Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie. Daarom sal Ek sorg dat julle uit julle land gegooi word. Ek sal verder ook sorg dat julle na ’n vreemde land gevat word waar julle voorouers nog nooit was nie. As julle daar is, kan julle ander gode dien net soveel as wat julle wil. Julle moet geen gunsies van My verwag nie.” Die Here sê: “Die tyd is naby dat mense wat vroeër plegtig belowe het: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte gered het,’ dit nie langer sal doen nie. In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel teruggebring het uit die noorde en al die lande waarheen hulle as gevangenes weggevat was, na hulle eie land toe.’ Hulle kan daarvan seker wees dat Ek hulle sal terugbring na hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het.” Die Here sê: “Ek stuur ’n leër en niemand sal uit hulle hande bly nie. Die soldate sal net soos vissermanne maak. Hulle sal die mense van Juda soos visse vang. Ek maak hulle ook soos jagters wat die mense van Juda in die berge sal jag, op heuwels en in rotsskeure. Ek hou Juda se mense baie fyn dop. Ek weet van elke verkeerde ding wat hulle doen. Hulle kan niks vir My wegsteek nie. Ek sal hulle weer en weer straf vir die slegte en verkeerde goed wat hulle gedoen het. Ek wou hê dat die land altyd skoon moes bly van ander gode. Israel het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het die land besmet met beelde wat nie ’n tikkie lewe in hulle het nie. Hulle het oral in hierdie land wat Ek vir hulle gegee het, van hierdie afskuwelike beelde gebring.” Here, U gee my krag. U beskerm my. Ek kan ook veilig by U wegkruip as gevaar op my pad kom. Mense van ander nasies sal van oral oor die aarde na U kom en sê: “Ons voorouers was dom om nikswerd afgode te dien. Hulle kan tog niks doen nie! Kan mense hulle eie gode maak? Hulle kan seker beelde maak, maar ’n beeld is tog nie ’n regte god nie!” Die Here sê: “Ek sal hulle wys hoe groot my krag is en hoeveel mag Ek het. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is. Ek is regtig God!” Die Here sê: “Die sonde wat die mense van Juda gedoen het, is in hulle hart en op hulle altare gegraveer. Dit is so permanent soos ’n mens iets met ’n beitel of diamantpunt sou uitkap. Selfs die kinders onthou die altare van hulle voorouers. Ook die pale wat hulle by die groen koeltebome geplant het, op byna elke hoë heuwel en op die berge en in die vlaktes. Julle het die hele land deur sulke hoë plekke gebou om afgode te aanbid. Daarom sal Ek al julle rykdom en julle kosbare besittings vir die vyand gee om te steel. Dit is die prys wat julle moet betaal vir die sonde wat julle oral deur julle land gedoen het. Ek het die land vir julle as ’n kosbare besitting gegee. Dit sal uit julle hande glip en julle sal dit verloor. Ek sal julle wegstuur uit julle land na ander vreemde lande waar julle vir julle vyande soos slawe sal werk. Julle het My baie kwaad gemaak. My woede brand soos ’n vuur wat net aanhou brand en nooit ophou nie.” Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met iemand wat nie op My vertrou nie, maar op ander mense. Mense is ook maar net vleis en bloed. Die een of ander tyd gaan hulle dood. So iemand is soos ’n bossie in die droë veld. Die bossie staan in ’n droë deel van die woestyn, in dooierige grond. Dit is ’n gebied waar niemand regtig kan bly nie. Die toekoms lyk glad nie goed vir so ’n mens nie. Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die toekoms. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels gaan ver af tot by die water. Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen. Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie. Hulle hou steeds aan vrugte dra. “Daar is niks wat jou so kan kul as die mens se hart nie. Niemand weet wat binne ’n mens aangaan nie. Niemand kan ook iets daaraan doen om ’n mens se hart te verander nie. Maar Ek is die Here, Ek weet! Ek ondersoek ’n mens se hart en gedagtes. Ek weet wat elkeen se motiewe is. Ek kyk na wat elkeen gedoen het en dan betaal Ek hulle wat hulle behoort te kry. “Mense wat op ’n oneerlike manier ryk word, is net soos ’n fisant wat eiers uitbroei wat sy nie gelê het nie. In ’n stadium sal hulle al hulle geld en skatte verloor. Aan die einde van hulle lewe sal hulle niks anders as arm gekke wees nie!” Ons tempel is reg van die begin af soos ’n pragtige troon. Dit staan hoog uit. Here, Israel se hoop vir die toekoms is van U afhanklik. As enige van Israel se mense dislojaal aan U sou wees, sal hulle verneder word. As hulle die rug vir U sou draai, is die dood hulle voorland. U, Here, is soos ’n fontein waaruit mense drink sodat hulle kan lewe. Nogtans het die mense van Israel van U af weggegaan. Ek het gebid: “Here, U is die enigste een wat my gesond kan maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. Ek wil net vir U alleen die eer gee deur mooi dinge van U te sê. Die mense vra my: ‘Wat het geword van die danige boodskap wat jy by die Here gekry het? Laat dit nou gebeur!’ Here, ek het nie by U aangehou om hulle te straf nie. Ek het ook nie gewens dat hulle slegte goed moet oorkom nie. Dit is nie ’n boodskap wat ek self uitgedink het nie, dit is u boodskap wat ek vir hulle gegee het. Moenie nou veroorsaak dat ek vir U bang moet wees nie. Ek vertrou heeltemal op U dat U my sal help as ek in die nood is. Here, laat mense wat my vervolg die slegste daarvan afkom. Laat dit asseblief met my goed gaan. Laat hulle die mense wees wat bang is, nie ek nie. Laat slegte goed hulle tref, sommer ’n dubbele dosis daarvan!” Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by al die hekke waar mense in- en uitgaan by Jerusalem. Ja, ook by die hek wat ‘die mense se hek’ genoem word. Dit is die hek wat die konings van Juda gebruik as hulle by Jerusalem wil in- en uitgaan. Sê daar vir die mense wat die hekke gebruik, konings, die mense van Juda en ook die mense wat in Jerusalem bly: ‘Hoor wat die boodskap van die Here vir julle is. Hy sê: Luister, wat Ek te sê het, is lewensbelangrik! Ek het opdrag gegee dat julle die sewende dag van die week as ’n rusdag moet hou. Daarom moet julle ophou om op hierdie dag die goed waarmee julle handel dryf, by die hekke rond te dra. Moenie op hierdie rusdag goed uit julle huise dra nie. Julle moet ook nie enige werk doen nie. Maak dit ’n dag wat julle ter wille van My uitsonder soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.’ Maar hulle voorouers wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou niks doen wat Ek vir hulle voorgeskryf het nie.” Maar die Here sê: “Julle weet wat Ek wil hê. Julle moet My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die rusdag nie. Julle moet ook nie op dié dag werk nie, maar dit spesiaal eenkant hou ter wille van My. As julle dit doen, sal daar ’n goeie toekoms vir julle wees. Daar sal altyd ’n koning in Jerusalem regeer wat deel is van die familielyn van Dawid. Die konings en prinse sal by die hekke van Jerusalem ingaan. Hulle sal op koetse en perde ry en tussen die mense van Juda wees. Daar sal ook altyd mense wees wat in Jerusalem sal bly, ook in die toekoms. Baie mense sal uit die stede van Juda na Jerusalem toe kom. Ook van die mense in die omgewing van Jerusalem. Dit sluit nou mense in van die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide. Hulle sal met allerhande offers en wierook wat hulle aan die Here wil toewy, na die huis van die Here toe kom. Op so ’n manier wil hulle vir Hom dankie sê. Maar as julle weier om die sewende dag as ’n rusdag ter wille van My te hou en aanhou om op dié dag julle handelsware rond te dra, sal Ek die hekke van Jerusalem aan die brand steek. Die vuur sal van die hekke af na die paleise versprei. Daar sal niemand wees wat dit sal regkry om die vuur te blus nie.” Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na die ateljee van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe na die ateljee van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerskyf te werk. Maar die pot wat hy besig was om te maak was nie reg volgens sy smaak nie. Hy het toe die klei weer inmekaargedruk totdat dit ’n bol was. Daarna het hy weer begin om ’n nuwe pot te vorm wat was soos hy dit wou hê. Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee wat met die klei te doen gehad het. Hy het gevra: “Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei gemaak het nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker is om daarmee te maak net wat hy wil, so is julle in my hande. As Ek in ’n stadium sê dat Ek ’n sekere nasie of ’n regering van ’n land omver sal gooi, sal afbreek en vernietig, kan Ek dit doen. Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is, sal Ek hulle nie inmekaardruk soos Ek eers wou nie. Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal opbou en groot en sterk sal maak, dan kan Ek dit doen. As die nasie egter verkeerde goed begin doen en nie aan My gehoorsaam is nie, sal Ek sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek eers beplan het dit moet nie. Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en Jerusalem, die Here sê: Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou in die verkeerde koers waarop julle nou is nie. Hou op om verkeerd te doen en doen wat reg is. Dit geld vir een en almal van julle.” Maar hulle het geantwoord: “Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil. Ons sal ons eie kop volg en doen wat ons wil, al is dit kastig sleg.” Toe sê die Here: “Het iemand al ooit gehoor van die afskuwelike ding wat Israel gedoen het? Vra maar rond onder die ander volke, so iets het nog nie eens by hulle gebeur nie. Smelt die sneeu ooit heeltemal in die hoogste dele van die Libanonberg? Sal die koue bergstrome van die Hermonberg ooit opdroog? Anders as met die sneeu en die water, is my volk onbetroubaar. Hulle het My in die steek gelaat! Hulle brand wierook om die nikswerd afgode te plesier. Hierdie afgode het hulle verlei. My mense weet wat reg is, maar het koers ingeslaan in die verkeerde rigting. Hulle kies om verkeerd te doen. Die gevolg hiervan is dat hulle land verwoes is. ’n Mens kan maar net van verbasing fluit. Almal wat verbyloop, sal skrik as hulle die toestand sien waarin die land is. Hulle kan maar net van verbasing die kop skud. As hulle teen hulle vyande veg, sal Ek hulle in alle rigtings laat spat. Dit sal lyk soos stof wat deur die oostewind rondgewaai word. Al is hulle in groot moeilikheid, Ek sal My nie daaraan steur nie. Inteendeel, Ek sal die rug vir hulle draai.” Toe het die mense gesê: “Kom ons maak ’n plan om Jeremia se mond toe te kry. Ons het mos die priesters wat ons kan leer wat die Here van ons wil hê. Verder het ons verstandige mense wat vir ons raad kan gee en mense wat die Here se boodskappe vir ons kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor Jeremia en steur ons nie aan wat hy te sê het nie.” Jeremia bid toe: “Here, help my! Luister wat die mense teen my beplan. Is dit regverdig dat goed met sleg terugbetaal word? Hulle het ’n gat vir my gegrawe om in te val. Maar onthou U hoe ek vir hulle gebid het? Ek het U gesmeek om hulle nie in u woede te straf nie. Dit is nou stank vir dank! Daarom, Here, laat hulle kinders honger ly! Laat hulle in oorloë doodgaan! Laat hulle vroue weduwees word sonder dat hulle kinders het! Laat die mans in ’n epidemie sterf! Laat die jongmans doodgaan terwyl hulle op die slagveld besig is om te veg! Laat hulle angskrete gehoor word as aanvallers skielik op hulle toesak terwyl hulle in hulle huise is. Laat hierdie slegte dinge met hulle gebeur omdat hulle vir my ’n gat gegrawe het om in te val. Hulle het vangstrikke vir my gestel om in te trap. Here, U weet van al die planne wat hulle gemaak het om my dood te maak. Ek vra dat U hulle onregverdige optrede nie sal vergewe nie. Moet ook nie die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, uitvee asof dit nooit bestaan het nie. Laat hulle voor u oë ondergaan. Terwyl U nog woedend vir hulle is, straf hulle!” Die Here het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan vir ’n paar van die senior leiers van die mense en van die senior godsdienstige leiers om saam met jou te gaan. Gaan by die uitgang met die naam Potskerfhek uit na die Hinnomvallei. Gaan sê daar vir hulle wat Ek sê. “Sê vir hulle: Konings van Juda en mense van Jerusalem, luister na wat Ek te sê het. Ek is sterker as alles en almal, Ek is die God van Israel! Ek gaan ’n groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit. Ek doen dit omdat die mense nie lojaal aan My was nie, maar hierdie plek vuil gemaak het met die goed wat hulle hier gedoen het. Hulle het hier wierook vir vreemde gode gebrand. So vreemd was hierdie gode dat niemand van hulle geweet het nie. Nie vandag se mense nie, ook nie hulle voorouers of die konings van Juda nie. Die ergste is dat hulle onskuldige mense hier doodgemaak het. Hulle het selfs plekke gebou waar hulle vir die god Baäl offers gebring het. Hulle het hulle eie kinders met vuur verbrand om in Baäl se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Om die waarheid te sê, dit het nie eens in my gedagtes opgekom om iets so verskriklik te beveel nie!” Die Here sê: “Maar neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomvallei sal wees nie, maar dit sal Moordvallei genoem word. Ek sal Juda en Jerusalem se planne in die wiele ry. Ek sal toelaat dat julle vyande julle doodmaak. Ek sal dat die aasvoëls en die wilde diere julle lyke opvreet. Ek sal hierdie stad so erg laat verwoes dat mense na hulle asem sal snak. Mense wat daar verbyloop, sal geskok wees en fluit van verbasing oor wat hulle sien. Jerusalem sal deur vyande omsingel word wat die mense van die stad wil uitroei. Omdat kos skaars sal word, sal die ingehokte mense moed begin verloor en baie lelike dinge begin doen. Van die mense sal hulle eie kinders en vriende begin eet.” Die Here het vir my gesê: “Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat jy saam met jou gebring het en sê vir hulle: Dit is wat die Here wat sterker as alles en almal is, sê: Soos hierdie kleipot hier voor julle in skerwe lê, so sal Ek met die mense van Juda en Jerusalem maak. Hulle sal soos hierdie kleipot wees wat nie weer heelgemaak kan word nie. Hulle sal die lyke van die mense in Tofet begrawe omdat daar nêrens anders meer plek sal wees nie. Dit is wat Ek met hierdie stad en sy mense sal doen,” sê die Here. “Ek sal die stad soos Tofet maak. Die mense van Jerusalem het op die dakke van hulle huise wierook gebrand om die sterre te aanbid. Hulle het ook ter wille van ander gode wyn uitgegooi om hulle tevrede te hou. Omdat hulle dit gedoen het, sal al die huise van die inwoners van Jerusalem en die paleise van die konings van Juda soos Tofet word. ’n Plek wat onaanvaarbaar is om na toe te gaan.” Nadat Jeremia by Tofet gedoen het wat die Here gesê het, het hy na die stad toe teruggegaan. Hy het in die gedeelte voor die tempel gaan staan en vir almal wat daar was, gesê: “Die Here is sterker as alles en almal en Hy is die God van Israel. Hy sê: Soos Ek beloof het, sal Ek slegte dinge met Jerusalem laat gebeur en met al die stede in die omgewing van die stad. Ek doen dit omdat julle so arrogant was en geweier het om na My te luister.” Pasgur was die seun van Immer. Hy was die priester wat in beheer van sake by die tempel was. Pasgur het gehoor wat Jeremia vir die mense by die tempel gesê het. Hy het Jeremia gevang en hom laat slaan. Daarna het hy Jeremia se voete in ’n blok laat vasmaak by die boonste Benjaminingang van die Here se tempel. Die volgende dag het Pasgur vir Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou ‘Die man wat in angs lewe’. Want dit is wat die Here sê: Ek sal jou en jou vriende lam van vrees maak. Jou vriende sal voor jou oë deur die vyand doodgemaak word. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal party van die mense vang en na Babel wegvat as sy gevangenes. Ander sal hy met die swaard doodmaak. Ek sal toelaat dat die vyand Jerusalem kaal stroop. Hulle sal al die rykdom in die stad, al die voorraad, al die waardevolle artikels en die skatte van die konings van Juda roof en na Babel toe vat. Jy, Pasgur, en ook jou familie sal as gevangenes na Babel toe weggevat word. Daar sal jy doodgaan en begrawe word. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy leuens vertel het oor wat gaan gebeur.” Jeremia het gebid: “Here, U het my omgepraat om u boodskapper te wees. Maar om die waarheid te sê, ek het my laat ompraat. U is baie sterker as wat ek is. U het my onkant gevang. Ek kon nie weerstand bied nie. Nou is ek die voorwerp van spot vir almal. Almal lag vir my. As ek my mond moet oopmaak om te praat, moet ek uitroep ‘geweld!’ en ‘vernietiging!’ Die boodskap wat U vir my gegee het, het my elke oomblik van die dag ’n bespotting by die mense gemaak. Ek het al by myself gedink ek sal niks van die Here sê of namens Hom praat nie. Maar ek kan net nie ophou nie. Die boodskap van die Here brand in my binneste soos ’n vuur. Dit is soos vuur wat in my liggaam ingehok is. Ek probeer so hard as wat ek kan om dit binne te hou, maar ek kan nie. Ek het gehoor dat hulle agter my rug praat. Hulle sê: Daar loop ‘Ou groot gevaar’. Dan sê hulle: ‘Kla hom aan! Kom ons kla hom aan!’ Selfs my naby vriende hou my dop. Hulle sit en wag vir my om ’n blaps te maak. Hulle sê: ‘Wag maar, hy sal vir homself ’n strik stel en dan sal ons ons kans kry om ons op hom te wreek.’ Maar Here, U is by my soos ’n sterk soldaat wat my beskerm. Ek sal niks oorkom nie. My vervolgers staan nie ’n kans teen U nie. Hulle sal tweede kom. Hulle sal rooi in die gesig staan omdat hulle niks kan regkry nie. Hulle vernedering sal nooit vergeet word nie. “Here, U is sterker as alles en almal! U is regverdig as U mense toets. U sien presies wat in mense se hart en gedagtes omgaan. Ek wil graag sien hoe U hulle terugbetaal vir wat hulle gedoen het. Ek het my saak in u hande gelos. Sing om vir die Here eer te bring! Praat oor hoe goed die Here is! Ek was soos ’n arm mens, maar U het my gered uit die mag van die mense wat my laat swaarkry het.” Ek is spyt dat ek ooit gebore is. Niemand mag ooit sê dat die dag van my geboorte ’n wonderlike dag was nie. Mag dit sleg gaan met die mens wat vir my pa gaan sê het: “Geluk, jy het ’n seun!” Mag dié man word soos die stede wat die Here destyds sonder om ’n oog te knip vernietig het. Mag sy dag begin met mense se angskrete en eindig met oorlogsgeskreeu! Hoekom wens ek dit? Omdat hy my nie doodgemaak het nog voor ek gebore is nie. Dan kon my ma se liggaam sommer my graf gewees het. Waarom is ek tog ooit gebore? My lewe is net swaarkry en pyn. Moet ek my hele lewe lank net verneder word? Die Here het weer vir Jeremia gesê wat hy moes praat. Dit was toe koning Sedekia vir Pasgur, die seun van Malkija, en Sefanja, die seun van Maäseja, wat ’n priester was, na hom toe gestuur het met ’n versoek: “Koning Nebukadnesar van Babel is besig om met sy soldate teen ons op te trek. Vra tog namens ons vir die Here wat gaan gebeur. Miskien sal die Here vir ons ’n wonderwerk doen soos Hy al in die verlede gedoen het. Miskien sal Nebukadnesar dan terugtrek.” Jeremia het hulle geantwoord: “Gaan sê vir koning Sedekia, die Here, die God van Israel sê: Op die oomblik is julle besig om buite die mure van die stad te baklei teen die koning van Babel en die Babiloniërs wat julle omsingel het. Ek gaan maak dat julle niks met julle wapens kan doen nie. Ek gaan julle vyand laat inkom in die hartjie van die stad in. Ek gaan ook self teen julle veg en julle my groot krag laat voel. Ek is verskriklik kwaad. Julle het My woedend gemaak. Ek gaan ’n epidemie in die stad laat uitbreek. Mens en dier sal doodgaan. Na dit alles gebeur het,” sê die Here, “sal koning Sedekia van Juda, van sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal dat koning Nebukadnesar van Babel en hulle vyande wat hulle dood wil hê, hulle vang. Hy sal hulle doodmaak sonder dat hy enigsins vir hulle jammer voel. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie. “Sê vir die mense, die Here sê: Ek gee julle ’n keuse. Julle kan kies tussen lewe en dood. Mense wat kies om in Jerusalem te bly sal óf in gevegte óf van die siekte-epidemie óf van die honger doodgaan. Maar wie kies om uit die stad te gaan en hulle aan die Babiloniërs oor te gee, sal bly lewe. Ek het besluit om hierdie stad skade aan te doen. Ek gaan niks goeds vir hulle doen nie,” sê die Here. “Ek sal die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal Jerusalem verbrand.” Sê vir die koninklike familie: “Dit is die boodskap van die Here vir julle! Die Here sê die volgende vir die konings wat uit die nageslag van Dawid kom: Sorg dat mense elke dag regverdig behandel word. As iemand besteel is, beskerm die persoon teen die uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur omdat julle verkeerd doen. Ek is teen julle gekant, mense van Jerusalem. Julle spog en sê dat niemand julle kan bykom waar julle op julle berg bly nie. Ek sal julle straf vir dit wat julle gedoen het,” sê die Here. “Ek sal ’n vuur in die paleis aansteek wat alles rondom tot as sal verbrand.” Die Here het vir my gesê: “Gaan na die paleis en praat self met die koning van Juda. Sê vir hom: Koning van Juda, u is een van koning Dawid se opvolgers. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die inwoners van Jerusalem. Luister ’n bietjie daarna. Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Verder moet julle ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie mense wat nie van julle eie mense is nie of weeskinders en weduwees sleg behandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor. As julle gehoorsaam is en nie hierdie verkeerde dinge doen nie, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry. Amptenare en die mense wat hulle help, sal saam met die konings ry. Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, so waar as wat Ek die Here is, sal hierdie paleis ’n bouval word.” Die Here sê ook oor die paleis: “Gilead is ’n vrugbare plek en die Libanonpieke staan hoog uit. So is die paleis van die koning van Juda vir My. ’n Plek waarop Ek trots is. Maar Ek sal die paleis verwoes en maak soos stede waarin daar geen enkele mens bly nie. Ek sal mense spesiaal aanstel wat sal kom en die plek met hulle gereedskap aftakel. Hulle sal die pragtige sederbalke uitruk en in die vuur gooi. Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here ’n groot stad soos hierdie verwoes?’ Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die ooreenkoms tussen hulle en die Here verbreek het. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees en hulle sou sy mense wees wat aan Hom behoort. Maar hulle het voor ander gode gebuig en hulle begin aanbid.’” Moenie hartseer oor koning Josia wees nie. Moet ook nie oor hom huil nie. Huil liewer oor koning Joahas wat deur sy vyand uit sy land uit weggevat is. Hy sal nooit weer terugkom nie. Sy geboorteland sal hy nooit weer sien nie. Eers was koning Josia koning. Hy is toe opgevolg deur sy seun Joahas. Joahas is gevang en uit sy land weggevat na ’n ander land. Die Here sê van hom: “Hy sal nooit weer terugkom nie. Hy sal doodgaan in die land waar hy ’n gevangene is en sal sy geboorteland nie weer sien nie.” Die Here sê: “Die toekoms lyk sleg vir koning Jojakim. Hy bou sy paleis met mense wat hy dwing om vir hom te werk. Dan bou hy ook nog ’n boonste vertrek op hierdie onmenslike manier. Hy betaal ook nie die mense wat vir hom werk nie. Hy sê: ‘Ek sal vir my ’n spoggerige paleis met groot kamers en baie vensters bou. Die vertrekke beslaan ek met sederhout en verf dit rooi.’ Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was. Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is. Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.” Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim: “Sy familie sal nie geskok uitroep en oor hom huil nie. Die mense van Juda sal ook nie oor hulle koning treur nie. Hy sal soos ’n donkie begrawe word. Sy lyk sal by Jerusalem uitgesleep word en buite die stad gelos word.” “Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter. Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie. Nou sal al die mense wat jou altyd gehelp het, verdwyn asof die wind hulle weggewaai het. Jou vriende op wie jy gereken het, sal gevang en weggevat word. Jy sal in die skande kom omdat jy so baie verkeerde dinge gedoen het. Ja, jy sal verneder word. Dit mag vir jou baie lekker wees om in ’n paleis te bly wat met sederhout mooigemaak is. Maar dit sal nie lank so aanhou nie. Binnekort sal jy van angs en vrees gil. Dit sal net so voel soos ’n vrou se geboortepyne.” Die Here het vir Jojagin, die seun van koning Jojakim van Juda, gesê: “So seker as wat Ek die lewende God is, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk. Ek weet jy is bang vir koning Nebukadnesar van Babel en sy mense. Hulle wil jou graag doodmaak. Ek sal jou in hulle hande laat beland. Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle doodgaan. Julle sal nooit weer na julle eie land waar julle so graag sal wil wees, kan terugkom nie.” Hoekom is hierdie man Jojagin soos ’n stukkende kleipot wat niemand dink enigiets werd is nie? Hoekom sal hy en sy kinders uit hulle eie land weggejaag word na ’n vreemde land wat hulle nie ken nie? Juda, jy en jou mense moet luister na die boodskap van die Here! Dit is wat die Here sê: “Maak ’n aantekening daarvan dat hierdie man Jojagin nie kinders gehad het nie. Ignoreer dit dat hy wel kinders het. Julle weet, nie een van sy kinders sal koning van Juda word nie. Dawid se koningslyn sal nie aangaan nie. Jojagin het misluk!” Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers van my mense. Hulle het nie mooi gekyk na die mense wat hulle moes versorg nie. Hulle was soos herders wat hulle skape verwaarloos het. Hulle het die mense uitmekaar laat spat en laat afdwaal. Die Here, wat die God van Israel is, sê vir hierdie leiers wat na die volk moet kyk: Julle het my mense soos skape uitmekaar laat gaan. Julle was onverantwoordelik. Julle het hulle nie opgepas nie. Daarom sal Ek julle straf vir al die skade wat julle hulle aangedoen het. Daar is van my mense wat sal oorleef in die lande waarheen Ek hulle verdryf het. Ek sal hulle almal bymekaarmaak,” sê die Here. “Ek sal hulle terugbring na hulle eie land waar hulle gebly het. Hulle sal baie kinders hê en weer baie meer mense word. Dan sal Ek nuwe leiers vir hulle gee wat mooi na hulle sal kyk. Hulle sal nooit ooit weer bang hoef te wees nie. My mense sal ook nie weer verneder word nie. Verder sal nie een van hulle wegraak of verdwyn nie.” Die Here sê verder: “Daar kom ’n tyd wanneer Ek weer ’n koning wat regtig deel is van Dawid se familie koning sal maak. Hy sal ’n verstandige koning wees. Hy sal sorg dat almal in die land regverdig behandel word. Hy sal ook doen wat reg is. Sy naam sal wees: ‘Die Here wat aan ons reg doen.’ Terwyl hy regeer, sal Juda vry wees van hulle vyande en Israel sal veilig voel.” Die Here sê verder: “Mense sweer gewoonlik ’n eed en sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte laat kom het.’ Maar daar sal ’n tyd kom dat dit nie meer gebeur nie. In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waarheen hulle weggevat was.’ Dan sal hulle in hulle eie land voortgaan met hulle lewe.” My hart is stukkend oor die vals profete. Die Here se woorde is heeltemal anders as gewone mense s’n. Wat Hy oor hierdie boodskappers te sê het, laat my bewe so groot as wat ek is. Ek slinger rond soos ’n mens wat dronk is van te veel wyn. Die land is vol mense wat dislojaal teenoor die Here is. Dit gaan nie goed in die land nie. Dit gaan eintlik treurig, want die weiding in die veld het verdroog. Die profete doen slegte dinge en misbruik hulle mag. Die Here sê: “Die priesters is net soos hierdie boodskappers. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek het selfs gesien dat hulle verkeerde goed in my tempel doen. Daarom sal dit met hulle gaan soos met iemand wat in die donker op gladde paaie moet loop. Hulle sal gedwing word om op donker roetes te stap. Omdat dit donker is, sal hulle val. Die tyd het aangebreek dat hulle gestraf gaan word. Ek sal sorg dat slegte dinge met hulle gebeur,” sê die Here. “Ek het gesien hoe die profete van Samaria ’n totaal onaanvaarbare ding doen. Hulle sê die boodskappe wat hulle bring, kom van Baäl af. Deur dit te doen lei hulle die mense van Israel op ’n dwaalspoor. Maar nou sien Ek dat die profete van Jerusalem nog erger dinge doen. Hulle hoereer, lieg en bedrieg en boonop moedig hulle mense wat verkeerd doen aan om daarmee vol te hou. ’n Mens sou eerder verwag het dat hulle mense sou aanmoedig om op te hou om verkeerd te doen. Hulle is niks beter as die mense van Sodom en Gomorra nie!” Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê die volgende oor hierdie profete: “Ek sal vir hulle bitter goed gee om te eet en gif om te drink. Dit is die profete van Jerusalem se skuld dat al die mense van die land leef asof Ek nie bestaan nie. Julle moenie na hierdie profete luister nie. Die boodskappe wat hulle vir julle bring, laat julle dinge hoop wat nie gaan gebeur nie. Die goed wat hulle kastig sien, is droombeelde wat hulle self uitgedink het. Die goed wat hulle praat, kom nie van My af nie. Hulle hou aan om die mense wat minder as niks dink van wat Ek sê, gerus te stel. Hulle sê: ‘Die Here sê julle sal rus en vrede hê!’ En vir die mense wat hardkoppig is en net doen wat hulle wil, sê hulle: ‘Niks slegs sal met julle gebeur nie!’” Wie van hierdie profete was al so deel van die binnekring van die Here dat hulle gesien het wat Hy doen of gehoor het wat Hy sê? Was daar enigeen van hulle wat regtig wou luister na wat Hy sê? Kyk, die woede van die Here het losgebars soos ’n storm. Sy straf sal hulle tref soos ’n warrelwind wat hulle rondruk. Die woede van die Here sal nie afkoel nie totdat Hy sy doel bereik het. Julle sal binnekort presies verstaan wat aan die gang is. Die Here sê: “Ek het nie hierdie profete gestuur nie en tog gaan hulle aan asof dit so is. Ek het nie vir hulle enige boodskappe gegee nie en tog maak hulle of Ek het. As hulle werklik in my binnekring was en geluister het na wat Ek sê, sou hulle my boodskap gekry het om oor te dra. Dan sou my volk opgehou het om al die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is. Dink julle miskien Ek is net in een plek te kry? Kan Ek nie ook raaksien wat ver van hier af gebeur nie? Dink enigiemand hulle kan vir My wegkruip en Ek sal hulle nie sien nie? Is Ek nie oral in die hemel en op die aarde nie?” vra die Here. “Ek het gehoor wat hierdie profete sê: ‘Kom ek vertel vir julle die droom wat die Here vir my in die nag gegee het.’ Dan vertel hulle leuens en is hulle so vermetel om te sê Ek het vir hulle die boodskap gegee. Hoe lank sal daar nog van hierdie profete wees wat mense bedrieg? Die goed wat hulle kwytraak, het hulle sommer self uitgedink. Hierdie profete vertel vir mekaar hierdie vals drome. Hulle probeer so om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het destyds van My vergeet toe hulle Baäl begin dien het. As hulle dan wil, laat hierdie vals profete hulle drome vir ander vertel. Maar as my profete praat, moet hulle die boodskap wat Ek vir hulle gegee het, sonder enige stertjies oordra. Wat waar is en wat vals is, verskil net soveel as wat kaf en koring van mekaar verskil,” sê die Here. Hy vra: “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n rots in stukke laat spat nie?” Daarom sê die Here: “Dit kan julle weet, Ek is teen hierdie profete wat hulle boodskappe by ander steel en maak of Ek dit gesê het. Ek is ’n opponent van hierdie gladdemondboodskappers wat stories vir die mense vertel en sê dit kom van My af. Hierdie profete se drome is niks anders as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense op die verkeerde pad lei. Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het niks vir hulle gesê om vir julle te sê nie. Wat hulle sê, help my mense net mooi niks,” sê die Here. Die Here het vir my gesê: “Jeremia, as een van die mense of een van die profete of van die priesters vir jou vra: ‘Wat is die las van ’n boodskap waarmee die Here jou opgesaal het?’ dan moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Die Here sê Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n boodskap van die Here vir julle. Dit is ’n boodskap dat Hy julle gaan straf,’ sal Ek die spesifieke mens en sy hele gesin straf. Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of ‘Wat het Hy gesê?’ Moenie langer ewe formeel sê: ‘’n Boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gewig aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van die Here, ons God, wat sterker as alles en almal is, te verdraai. “Jeremia, jy moet vir die profete vra: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of ‘Wat sê die Here?’ Maar sê nou hulle sê: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ As hulle dit sou doen, moet jy sê: Die Here sê: ‘Julle bly sê die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie. Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook vir hierdie stad wat Ek vir julle en ook julle voorouers gegee het. Julle gaan vir altyd verneder word. Julle sal so in die skande kom dat niemand dit ooit sal vergeet nie.’” Koning Jojagin van Juda was die seun van Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het hom uit sy land uit weggevat Babel toe. Saam met Jojagin is ook die leiers van Juda, ambagsmense en ander opgeleide mense na Babel toe weggevat. Nadat dit gebeur het, het die Here vir my ’n droom laat sien van twee mandjies met vye wat voor die tempel van die Here staan. In die een mandjie was daar goeie vye. Dit was van die vye wat eerste ryp geword het. In die ander mandjie was die vye so sleg dat ’n mens dit nie kon eet nie. Die Here het toe vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien vye. Sommige van die vye is baie goed, terwyl ander so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie.” Die Here het toe vir my hierdie boodskap gegee: “Ek is die Here, die God van Israel, en van hierdie mandjies sê Ek: Die goeie vye is soos die mense van Juda wat Ek uit hulle land laat wegvat het na die land van die Babiloniërs. Dit was vir hulle eie beswil dat Ek dit gedoen het. Maar Ek sal ’n ogie oor hulle hou en kyk dat dit met hulle goed gaan. Ek sal hulle weer na hulle land toe laat terugkom. Soos ’n mens ’n gebou opbou, so sal Ek met die mense maak wat terugkom uit Babel. Ek sal sorg dat dinge weer vir hulle begin regkom. Ek sal hulle nie weer afbreek nie. Dit sal wees asof Ek hulle ’n nuwe volk maak. Ek sal hulle nie laat ophou bestaan nie. Ek sal hulle weer mense maak wat sal erken dat Ek die Here is. Hulle sal weer soos my eie mense wees en Ek sal hulle God wees. Hulle sal My alleen dien en niemand anders nie.” Van die slegte vye sê die Here: “Koning Sedekia van Juda, sy leiers, die mense van Jerusalem wat in die land agtergebly het en ook nog die mense wat in Egipte bly, is soos hierdie vye. Ek sal met hulle maak soos met hierdie slegte vye wat ’n mens nie kan eet nie. Dit sal so sleg gaan met Sedekia en sy groep mense dat die nasies van die wêreld sal skrik. In al die lande waarheen Ek hulle sal verstrooi, sal mense niks van hulle dink nie. Hulle sal gespot word. Mense sal grappe oor hulle maak en hulle naam soos ’n vloekwoord gebruik. Ek sal vyande teen hulle laat oorlog maak. Maar Ek sal ook sorg dat daar nie kos is om te eet nie. Verder sal siekte-epidemies onder hulle uitbreek. Dit sal aanhou totdat daar niemand in die land Israel oor is wat Ek aan hulle en hulle voorouers gegee het nie.” In die vierde jaar wat Jojakim koning van Juda was, het die Here met Jeremia oor die mense van Juda gepraat. Dit was die eerste jaar wat Nebukadnesar koning van Babel was. Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê: “Dit is nou vir 23 jaar wat die Here vir my boodskappe gee. Vandag nog sê Hy steeds vir my wat om vir julle te sê. Dit het begin in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was. Koning Josia was die seun van Amon. Ek het altyd vir julle gesê wat die Here sê, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie. Die Here het weer en weer sy profete na julle toe gestuur, maar dit het nie gehelp nie. Julle het nie na hulle geluister nie. Om die waarheid te sê, julle het nie eens probeer om te hoor wat hulle wou sê nie. Die boodskap was duidelik: Julle is op die verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Maar julle moenie agter ander gode aanloop nie. Moet hulle ook nie dien of voor hulle buig nie. Julle maak My baie kwaad as julle dit doen, want julle het hierdie gode met julle eie hande gemaak. As julle hierdie gode nie so vereer nie, sal Ek niks slegs aan julle doen nie. “Maar julle het nie na My geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle aanbid het. So het julle vir julleself moeilikheid gemaak.” Die Here is sterker as alles en almal, en Hy sê: “Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die volke uit die noorde bymekaar laat kom. Ook vir koning Nebukadnesar van Babel wat vir My sal werk. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly, laat baklei. Hulle sal ook teen die volke wat in die omgewing is, baklei. Ek sal julle heeltemal vernietig. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal minder as niks van julle dink en met julle spot. Ek sal sorg dat julle nie meer bly sal wees en lag nie. Selfs die vrolikheid by troues sal nie meer gehoor word nie. Die meule waarmee koring gemaal word, sal stil wees. Daar sal ook nie meer in die aand lig in die huise wees nie, want daar sal nie meer mense oor wees nie. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oorbly. Al hierdie nasies sal vir 70 jaar vir die koning van Babel werk. “Na die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek sal hulle land vir altyd verwoes. Ek het baiekeer gesê dat Ek slegte dinge met hierdie land gaan laat gebeur. Ek het Jeremia gebruik om hierdie dinge teen die nasies te sê. Dit is opgeskryf in hierdie boek. Baie van die nasies met magtige konings sal slawe van die Babiloniërs kom maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan my mense in Juda gedoen het.” Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Vat dit na die nasies toe waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink. As hulle daaruit gedrink het, sal hulle slinger. Die oorlog waarin Ek hulle sal laat beland, sal hulle mal maak.” Ek het die beker by die Here gevat en na al die nasies toe gegaan na wie die Here my gestuur het. Ek het hulle toe uit die beker laat drink. Die mense van Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink. Verder ook hulle konings en die leiers van Jerusalem en Juda. Hulle moes uit die beker drink sodat hulle land verwoes kon word en leeg sou staan. Dit is ’n vreeslike gesig om te sien. So is dit nog steeds vandag die geval. Ek het ook Egipte toe gegaan. Daarna het ek na ander volke toe gegaan wat ook uit die beker moes drink: die farao van Egipte, sy amptenare en sy leiers, ook al sy mense en die mense wat nie van Egipte af kom nie, maar tussen hulle bly. Dan ook die konings van die gebied van Us, die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het. Hierby kom ook nog Edom, Moab en Ammon, en die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See. Nog nasies wat uit die beker moes drink, is Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke. Dan ook nog die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek en die konings van Simri, Elam en Medië. Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal moet die koning van Babel uit hierdie beker van die Here se woede drink. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here wat sterker as alles en almal is, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle sal gebeur in die oorlog waarin Ek julle gaan laat beland.’ En as hulle vasskop en nie uit die beker wil drink nie, sê vir hulle: ‘Die Here sê, julle het nie ’n keuse nie, drink!’ Ek het reeds begin om Jerusalem te straf. Die stad word my stad genoem. As Ek my stad nie oorsien nie, hoe sal julle ooit kan dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek laat al die inwoners van die wêreld oorlog maak. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is en Ek sê dit! “Jeremia, jy moet vir hulle almal hierdie boodskap gee, al wil hulle dit nie graag hoor nie. Sê vir hulle: Soos die donderweer dreigend dreun, so sal die Here ook dreigend optree. Uit sy blyplek wat hoog in die hemel en baie spesiaal is, kan ’n mens sy gedreun hoor. Sy magtige gedreun is vir sy eie mense bedoel. Hy skree ook hard vir al die mense op die aarde. Sy stem klink soos die geskree van mense wat met druiwe by die wynpers werk. Sy geskree sal oor die hele aarde weergalm. Die Here gaan ’n saak maak teen al die nasies. Hy sal soos ’n regter al die mense van die wêreld straf. Mense wat slegte dinge gedoen het, sal Hy in die oorlog laat doodgaan. Dít is wat die Here sê sal gebeur.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Let ’n bietjie op, die een volk na die ander gaan deur ’n ramp getref word! ’n Groot storm bou op in die verste uithoeke van die aarde.” In dié tyd sal die mense wat deur die Here afgemaai is, oral oor die aarde dood lê. Niemand sal oor hierdie mense huil nie. Niemand sal die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê. Leiers, julle is soos herders vir die mense. Julle moet huil en kla en in die stof rondrol van hartseer. Die tyd het gekom dat julle soos skape geslag gaan word. Julle sal soos ’n kleipot val en in skerwe breek. Leiers, julle kan nêrens heen vlug nie. Daar is geen manier hoe julle sal kan vlug nie. Hoor hoe huil en kla die leiers van die mense. Die Here het hulle vreedsame land verwoes. Die Here was so kwaad dat hy die rus en vrede van die nasies weggevat het. Die Here is soos ’n leeu wat uit sy lêplek gekom het op soek na ’n prooi. Hy sal teen die vyand optrek en hulle land verwoes. Dit sal gebeur omdat mense uit wraak doodgemaak sal word en omdat die Here vreeslik kwaad is. Die Here het vir Jeremia gesê wat hy vir die mense van Juda moes sê. Dit was net toe Jojakim koning van Juda geword het. Jojakim was die seun van koning Josia. Die Here het gesê: “Baie mense kom uit al die stede van Juda na die tempel om die Here te aanbid. Gaan staan in die voorste gedeelte van die tempel van die Here en praat met hierdie mense. Sê vir hulle alles wat Ek jou opdrag gegee het om te sê. Moenie een woord terughou nie. Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde goed te doen waarmee hulle besig is. Dan kan Ek my planne om hulle kwaad aan te doen vir die slegte goed wat hulle doen, verander. Sê vir hulle, die Here sê: Ek het vir julle riglyne gegee hoe om te lewe. Ek het ook keer op keer my profete na julle gestuur om julle te waarsku. Nie dat julle julle juis aan hulle gesteur het nie. As julle my riglyne en my boodskappers aanhou ignoreer, sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek die aanbiddingsplek Silo verwoes het. Ek sal Jerusalem so sleg laat lyk dat die nasies dit as ’n vloekwoord sal gebruik.” Die priesters, die sogenaamde profete van die Here en al die mense het geluister na wat Jeremia te sê gehad het daar voor die Here se tempel. Toe hy klaar gepraat het en alles gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die omstanders hom aangeval. Hulle het geskree: “Jy moet doodgemaak word oor wat jy sê!” Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te praat? Hoe kan jy sê dat die tempel net soos wat met Silo gebeur het, vernietig sal word? Wie is jy om te sê dat Jerusalem verlate en sonder enige mense sal wees?” Die mense wat daar voor die tempel om Jeremia saamgedrom het, het hom gedreig met hulle houding. Die leiers van Juda was in die paleis toe hulle die nuus hoor van wat voor die tempel gebeur het. Hulle het haastig van die paleis af na die Nuwe Ingang van die tempel gegaan. Daar het hulle ’n vergadering gehou. Die priesters en die profete het toe vir die leiers van Juda en al die mense wat daar rondgestaan het, gesê wat hulle dink. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor wat hy gesê het. Hy het gesê slegte goed gaan met Jerusalem gebeur.” Toe het Jeremia homself begin verdedig teenoor die leiers en die mense. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur met die boodskap wat met die tempel en met Jerusalem gaan gebeur. Elke liewe woord wat ek gepraat het, het die Here vir my gegee om te sê. Maar as julle nou ophou om verkeerde goed te doen en begin doen wat die Here julle God van julle verwag, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gesê het Hy gaan doen nie. Met my moet julle maar maak soos julle goeddink. Ek is in julle hande uitgelewer. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige mens dood. Julle, hierdie stad en al die mense van die stad sal die gevolge moet dra as julle dit doen. Ek praat die waarheid as ek sê dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge vir julle te kom sê.” Toe het die leiers van Juda en die gewone mense vir die priesters en die sogenaamde profete van die Here gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie. Hy het namens die Here ons God met ons kom praat.” ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense gepraat wat daar bymekaar was. Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset vir al die mense van Juda boodskappe van die Here gebring het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het gesê: ‘Die Here is sterker as alles en almal en Hy sê: Sion sal soos ’n veld omgeploeg word. Jerusalem sal ’n hoop bourommel word. ’n Groot bos sal op die heuwel groei waar die tempel eers gestaan het.’ Het koning Hiskia en die mense van Juda vir Miga doodgemaak omdat hy hierdie dinge gesê het? Nee, die koning het groot respek vir die Here gehad. Hy het in sy goeie boekies probeer kom. Die Here het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos Hy eers wou doen nie. As ons Jeremia doodmaak, wie weet wat kan ons tref?” In dié tyd was daar ook ’n ander man wat namens die Here boodskappe oorgedra het. Sy naam was Urija en hy was ’n seun van Semaja. Hy het van die dorp Kirjat-Jearim af gekom. Sy boodskappe was ook teen Jerusalem en hierdie land. Hy het baie dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat Urija te sê gehad het, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het toe Egipte toe gevlug. Maar koning Jojakim het Elnatan, wat ’n seun van Akbor was, Egipte toe gestuur. ’n Paar ander mense het saam met Elnatan gegaan om Urija te gaan aankeer. Hulle het hom in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija met ’n swaard laat doodmaak. Daarna het hy hom tussen die gewone mense begrawe. Agikam, die seun van Safan, het Jeremia se kant gevat. Hy het gekeer dat hulle Jeremia aan die mense oorgee, want hulle wou hom doodmaak. Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe Sedekia as koning van Juda begin optree het. Sedekia was ’n seun van koning Josia. Die Here het vir Jeremia gesê: “Maak vir jou ’n juk met gedraaide leerrieme aan, net soos dié wat ’n mens gebruik om osse in te span wat ’n ploeg of ’n wa trek. Sit hierdie dwarshout met die gedraaide rieme aan op jou nek. Stuur dan ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon deur hulle verteenwoordigers.” Hierdie verteenwoordigers het na koning Sedekia in Jerusalem gekom. Sedekia was die koning van Juda. Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer. Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het. Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie. Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan. Maar al die volke wat hulle aan die koning van Babel oorgee en vir hom werk, sal Ek toelaat om in hulle eie land te bly. Hulle sal kan aangaan om die grond te ploeg en daar te bly soos hulle gewoond was,” sê die Here. Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly leef, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Werk vir hom en sy mense en julle sal bly leef. Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie. Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens! Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.” Ek het toe met die priesters en die mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie luister na julle profete wat sê dat al die kosbare goed wat uit die tempel van die Here weggevat is, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Hulle lieg vir julle! Moenie na hulle luister nie. Gee julleself aan die koning van Babel oor en julle sal bly leef. Hoekom moet hierdie stad verwoes word omdat julle julle ore aan hulle uitleen? Hulle sê hulle is die Here se boodskappers. As dit so is, laat hulle dan tot die Here wat sterker as alles en almal is, bid. Laat hulle Hom dan vra dat die kosbare goed wat in die tempel van die Here oorgebly het, in die paleis in Juda en in Jerusalem nie na Babel toe weggevat word nie. Die Here het reeds gesê wat met die koperpilare by die ingang van die tempel gaan gebeur. Hy het ook gesê wat met die groot koperbad, die staanders en die ander bakke wat nog in hierdie stad oor is, gaan gebeur. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel ontvoer. Maar toe hy dit destyds gedoen het, het hy van die kosbare goed net so in die tempel en die paleis gelos. Maar hoor wat sê die Here oor hierdie kosbare goed wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is: Hy sê: Al hierdie goed sal na Babel toe weggedra word. Daar sal dit bly totdat Ek eendag wil hê dit moet terugkom. As die tyd reg is, sal Ek alles weer na Jerusalem toe terugbring.” In die laatsomer van die vierde jaar wat Sedekia koning van Juda was, het Gananja met my gepraat. Gananja was die seun van Assur en het uit Gideon gekom. Hy het ook gesê dat hy ’n profeet van die Here is. Hy het in die tempel met my gepraat terwyl al die priesters en gewone mense gestaan en luister het. Hy het gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek sal die mag van die koning van Babel wat soos ’n juk op julle nek was, breek. Koning Nebukadnesar het ’n klomp kosbare bakke uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit na die tempel toe terugbring. Ek sal ook vir Jojagin, wat die seun van Jojakim is, hiernatoe terugbring. Maar Ek sal ook die ander mense wat saam met hom na Babel ontvoer is, terugbring. Julle kan seker wees, Ek sal die mag wat die koning van Babel oor julle het, verbreek.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen. Jeremia het voor al die priesters en die mense wat saamgedrom het, geantwoord op wat Gananja gesê het. Hulle het nog steeds daar voor die tempel gestaan en praat. Hy het gesê: “Goed so! Ek hoop dit gebeur net soos jy gesê het. Ek hoop die Here doen alles wat jy sê. Ek hoop ook dat Hy al die kosbare goed wat uit die tempel weg is, uit Babel sal terugbring hier na Jerusalem toe. Ja, ook al die mense wat gevang en ontvoer is. Maar luister nou ernstig na wat ek vir jou voor al hierdie mense wil sê. Nog lank voor my en jou was daar al profete van die Here wat moeilike dinge moes sê teen lande wat baie sterk was. Hulle moes vir die mense gesê het van oorloë wat sou kom. Maar hulle moes ook vir hulle sê dat van hulle van die honger sou doodgaan of dat siektes hulle sou tref. As dit sou gebeur dat ’n profeet mense gerusstel dat hulle vrede en rus gaan hê, moet ’n mens maar eers wag en sien of dit waar word. Net as dit wat die profeet gesê het gaan gebeur, regtig gebeur, kan ’n mens sê die Here het die persoon gestuur.” Gananja het na Jeremia toe gegaan en die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek. Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe dat Hy binne twee jaar die mag van Nebukadnesar, die koning van Babel, soos hierdie juk sal breek. Nebukadnesar gebruik sy mag om nasies te onderdruk, maar die Here sal dit stopsit.” Toe het Jeremia van die tempel af weggeloop. Kort daarna het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê: “Gaan sê vir Gananja, Ek, die Here, sê: Jy het hierdie juk wat van hout gemaak is, gebreek. Maar jy sal in die plek van die houtjuk een van yster kry. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is. Ek is die God van Israel. Ek sal ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies sit. Ek sal hulle dwing om voor Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, te buig en vir hom te werk. Hy sal mag oor hulle hê. Hulle sal geen regte hê nie. Alles sal onder sy beheer wees. Hy sal selfs oor die wilde diere beheer hê.” Jeremia en Gananja het al twee gesê dat hulle profete van die Here is. Jeremia het toe vir Gananja gesê: “Luister, Gananja, die Here het jou nie as sy boodskapper gestuur nie! En tog het jy dit reggekry dat die mense jou leuens glo. Omdat jy dit gedoen het, sê die Here: ‘Ek sal jou van die aarde af wegvee. Jy sal vanjaar nog doodgaan! Jy het teen die Here in opstand gekom en Hy sal dit nie duld nie.’” Gananja is twee maande later, in die sewende maand van daardie jaar, dood. Jeremia het ’n brief geskryf terwyl hy in Jerusalem was. Hy het dit gestuur aan die senior leiers, die priesters, die profete en al die mense van Juda wat in Babel was. Koning Nebukadnesar het hulle uit hulle land weggevat Babel toe. Koning Jojagin en die koningin-moeder was toe alreeds as gevangenes uit Jerusalem weggevat. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda en al die mense wat goed met hulle hande kon werk. Dit was onder andere ambagsmense en mense wat met yster kon werk. Jeremia het die brief saam met Elasa, wat Safan se seun was, en ook saam met Gemarja, wat Gilkija se seun was, gestuur. Koning Sedekia het hulle Babel toe gestuur om hom by koning Nebukadnesar te verteenwoordig. Jeremia het in sy brief die volgende geskryf: Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem uit laat wegvat het na Babel toe: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie. Hulle vertel vir julle leuens en dan sê hulle nog dat hulle namens My praat. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here. Die Here sê: “Die waarheid van die saak is, julle sal vir 70 jaar in Babel wees. Maar as die tyd verby is, sal Ek begin om al die goeie beloftes wat Ek gemaak het, waar te laat word. Ek sal julle na julle land toe laat terugkom. Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom. Julle sal julle doel bereik deurdat Ek die taal van julle hart sal verstaan. Ek verstaan wat julle graag wil hê. Ek sal sorg dat julle nie langer as gevangenes in ’n ander land sal bly nie. Ek sal julle wegvat tussen al die nasies waar julle nou is. Dit is so dat Ek die rede is dat julle daar in die vreemde sit, maar Ek sal julle na julle eie land toe terugbring,” sê die Here. Dit is waar dat julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het, maar hoor ’n bietjie wat die Here te sê het oor die konings wat steeds in die familielyn van koning Dawid is. Die Here het ook die een en ander te sê oor julle mense wat in Jerusalem agtergebly het en nie saam met julle na Babel weggevat is nie. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek sal veroorsaak dat hulle in oorloë beland. Meer as dit nog, hulle sal ook sukkel om kos in die hande te kry. Om nie eens te praat van die siektes wat hulle sal kry nie. Ek sal hulle soos slegte vye maak, te sleg om te eet. Ek gaan dit vir hulle sommer baie moeilik maak. Waar hulle ook al gaan, sal daar oorloë, kosskaarste en siektes wees. Ek sal hulle oor die hele wêreld laat spat. En daar waar hulle kom sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal bang wees om naby hulle te kom omdat iets slegs hulle dalk ook kan tref. Hulle sal ander afstoot en verag word. Ander weer sal met hulle spot en grappe oor hulle maak. Die rede hoekom dit so sal gebeur, is doodeenvoudig dat hulle hulle nie aan My steur nie. Hulle luister nie na My nie. Ek het soveel keer al met hulle gepraat deur my profete wat Ek na hulle gestuur het, maar pure verniet.” Maar nou vra ek julle almal wat uit Jerusalem weggevat is en nou in Babel is, luister na wat die Here sê. Hy is die God van Israel. Hy sê dat Agab, die seun van Kolaja, en Sedekia, die seun van Maäseja, sê dat hulle boodskappe bring wat van die Here af kom. Dit is natuurlik alles leuens. Daarom sê die Here: “Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee. Hy sal hulle laat doodmaak waar almal dit kan sien. Wat met hierdie twee mense sal gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as een van die mense van Juda wat in Babel is, iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’ Wat hierdie twee sogenaamde profete onder die mense van Israel gedoen het, is vreeslik. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. En dan het hulle ook nog die vermetelheid om leuens te vertel en voor te gee dat wat hulle sê, van My af kom. Ek het hulle nie gestuur, maar Ek weet wat hulle alles aanvang. Ek sal self teen hulle getuig,” sê die Here. Die Here het ook ’n boodskap vir Semaja gehad. Hy was van Negelam afkomstig. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Jy het ’n brief geskryf wat jy self geteken het. Hierdie brief het jy aan die mense gestuur wat in Jerusalem bly. Maar jy het dit ook aan die priester Sefanja, die seun van Maäseja, en ander priesters gestuur. Daarin het jy vir Sefanja geskryf: ‘Die Here het jou in die plek van die priester Jojada aangestel. Jy is nou in beheer van die tempel. Dit sal jou werk wees om toe te sien dat geen mal mens boodskappe namens die Here bring nie. As daar so iemand is, moet jy die persoon in die tronk sit met ’n boei om die nek. Verduidelik nou ’n bietjie, hoekom het jy niks aan Jeremia van Anatot gedoen nie? Hy het sulke boodskappe namens die Here vir jou gegee. Jeremia het vir ons in Babel ’n brief gestuur waarin hy sê dat ons lank hier in die vreemde sal bly. Hy het gesê dat ons huise moet bou om in te bly. Verder moes ons ook tuine maak en eet wat daarin groei.’” Toe die priester Sefanja hierdie brief van Semaja af gekry het, het hy dit vir Jeremia gelees. Die Here het toe vir Jeremia hierdie boodskap gegee: “Laat weet vir al die mense wat weggevat is Babel toe: Die Here is nie tevrede met Semaja wat van Negelam af kom nie. Hy het boodskappe vir julle namens My gebring, maar Ek het hom nie daarmee gestuur nie. Hy het julle sy leuens laat glo. Omdat Semaja dit gedoen het, sal Ek hom en sy familie straf. Nie een van sy mense sal bly lewe om al die goeie dinge te sien wat Ek vir my mense gaan doen nie. Hy het die mense geleer om rebels teen My te wees.” Dit is wat die Here self sê! Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê: “Die Here is die God van Israel en Hy sê: Skryf alles wat Ek vir jou gesê het, in ’n boek. Die tyd kom dat Ek dinge vir my mense weer sal maak soos dit vroeër was. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het. Hulle sal weer aan die land dink as hulle eie en hier bly.” Dit is wat die Here vir Israel en Juda te sê het. Hy sê: “Ek het die angstige uitroepe van my mense gehoor. Daar is vrees en geen kalmte nie. Ek wil ’n vraag vra: Kan mans babas hê? Nou waarom staan hulle dan bleek in die gesig met hulle hande op hulle heupe soos ’n vrou wat kraampyne voel? Dit is ’n verskriklike tyd wat die mense beleef. Nog nooit in die geskiedenis het mense sulke dinge deurgemaak nie. Dit is ’n tyd van baie probleme vir die mense van Israel. Maar op die ou einde sal hulle uit die moeilikheid gered word. In dié tyd sal Ek die juk breek wat op my mense se nek druk. Ek sal ook die kettings waarmee hulle vasgemaak is, uitmekaar laat spat. Geen vreemde mense sal meer oor hulle baasspeel nie. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is! Die mense van Israel sal net vir My as hulle God dien. Verder sal hulle ook net vir iemand uit Dawid se familie as hulle koning dien. Ek sal hom as hulle koning aanstel.” Die Here sê ook: “Israel, julle moet nie bang of angstig wees nie. Ek sal julle en julle kinders terugbring uit die land waarheen julle weggevat is, al is dit ook ver. Israel, julle sal weer rus en vrede in julle eie land hê. Julle sal vir niemand bang hoef te wees nie. Wees gerus, Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek sal julle uit die hande van julle vyande red. Julle is oral versprei onder die nasies. Hulle sal Ek vernietig, maar julle sal nie vernietig word nie. Maar hoewel Ek julle nie sal vernietig nie, gaan Ek julle nogtans straf. Ek sal julle ’n regverdige straf gee.” Die Here sê ook: “Julle toestand is soos ’n wond wat nie gesond kan word nie. ’n Mens kan maar net daaroor huil. Daar is niemand wat julle kan help nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde nie. Verder is daar geen hoop dat julle gesond sal word nie. Al die mense met wie julle ooreenkomste aangegaan het om julle te help, het julle in die steek gelaat. Hulle gee nie om wat van julle word nie. Ek het julle aangeval soos ’n mens met ’n vyand sou maak. Ek het julle sonder enige genade gestraf. Julle het baie verkeerde dinge gedoen. Julle is aan soveel goed skuldig, dit is te veel om op te noem. Waarom roep julle so hard uit oor julle seerkry? Niks kan die pyn laat verdwyn nie. Ek straf julle omdat julle so baie dinge verkeerd gedoen het. Julle is deur en deur skuldig. Maar dit is ook so dat die mense wat julle probeer vernietig, self deur ander vernietig sal word. Al julle vyande sal self ook gevang en na ander lande toe weggevat word. Almal wat julle probeer onderdruk, sal self voel wat dit is om deur ander mense onderdruk en uitgebuit te word. Die mense wat julle besteel, sal op hulle beurt weer deur ander mense besteel word. Mense wat dit waag om julle aan te val sal self aangeval word.” Die Here sê: “Ek sal sorg dat dit weer met julle goed sal gaan. Ek sal julle wonde gesond maak. Op die oomblik praat hulle van julle as ‘mense wat verstoot is; Jerusalem vir wie niemand meer omgee nie’. Maar Ek sal Israel se omstandighede verander. Ek sal hulle terugbring na hulle ou blyplek toe omdat Ek vir hulle omgee. Jerusalem sal weer op sy ou plek gebou word. Die paleis sal ook herbou word soos dit oorspronklik gelyk het. Hulle sal weer vrolik wees en liedere sing omdat hulle dankbaar is. Ek sal sorg dat my mense se getalle groei. Hulle sal ’n groot volk wees wat deur ander gerespekteer word. Dit sal met hulle kinders goed gaan soos vroeër. Ek sal weer sorg dat hulle my volk is. As iemand dit sou waag om hulle te onderdruk, sal Ek hulle straf. Hulle sal nie deur iemand van ’n ander nasie regeer word nie. Een van hulle eie mense sal koning wees. Ek sal hom nooi om naby My te kom en hy sal kom. Wie sou dit waag om voor My te kom staan as Ek hom nie genooi het nie?” vra die Here. “Julle sal my eie mense wees, my volk, en Ek sal julle God wees.” Maar neem kennis, die Here se woede is soos ’n storm wat losbars. Dit is soos ’n orkaan wat die slegte mense sal tref. Die Here se woede is iets vreesliks. Dit sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen het en bereik het wat Hy beplan. As die tyd aanbreek dat hierdie dinge gaan gebeur, sal julle dit verstaan. Alles sal dan duidelik word. Die Here sê: “In daardie tyd sal Ek al die families van Israel se God wees en hulle sal my volk wees.” Hy sê verder: “Die mense wat gevegte oorleef het waarin hulle maklik dood kon gewees het, sal beter daaraan toe wees in die woestyn. Ek sal aan die mense van Israel kalmte en rus gee.” Lank gelede reeds het die Here vir Israel gesê: “Ek het julle liefgehad met ’n liefde wat nooit ophou nie. Daarom sal Ek altyd lojaal aan julle bly. Ek sal julle weer die volk maak wat julle vroeër was, Israel. Julle sal soos jongmeisies van blydskap dans en op tamboeryne speel. Julle sal weer wingerde teen die hange van die Samariaberge plant. Wanneer die wingerde druiwe gee, sal julle die vrugte kan geniet wat julle self geplant het. Daar sal ook ’n dag kom waarop die wagte wat in die heuwels van Efraim is, sal uitroep: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe. Die Here is daar!’” Die Here sê: “Sing omdat julle bly is oor Israel. Israel is die gelukkigste volk van al die volke. Skree dit hard uit! Gee eer aan die Here. Vertel van alles wat Hy gedoen het. ’n Deel van die mense van Israel het die tyd wat hulle gevangenes in Babel was, oorleef. Dit is die Here wat sy mense weer vrygemaak het. Ek sal hulle uit die noorde terugbring na hulle eie land toe. Selfs al is hulle op die uithoeke van die aarde, sal Ek hulle bymekaarmaak en terugbring. Ek sal ook nie die blinde en kreupel mense vergeet nie. Ek sal ook nie van die vroue wat babas verwag of wat op die punt is om ’n baba te hê, vergeet nie. ’n Groot klomp mense sal terugkom na hulle land toe. Trane van blydskap sal oor hulle gesig loop. Ek sal hulle troos en hulle versigtig na hulle eie land toe teruglei. Ek sal hulle langs waterstrome lei. Hulle sal op paaie loop wat gelyk is sodat hulle nie sal val nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind.” Die Here het iets vir die nasies te sê wat Hy wil hê hulle moet hoor. Selfs lande wat baie ver is en by die see is, moet dit hoor: die Here het sy volk uitmekaar laat spat. Maar Hy sal hulle weer bymekaarmaak. Hy sal hulle oppas soos ’n herder sy skape oppas. Soos ’n mens ’n losprys moet betaal om iemand wat ontvoer is los te kry, so het die Here met Israel gemaak. Israel se vyande is baie sterk, maar die Here het hulle losgekry uit hulle mag. Hulle sal terugkom en op die hoogtes van Jerusalem sal hulle vrolike liedere sing. Hulle sal bly wees omdat die Here so goed vir hulle is. Hy het vir hulle graan, wyn en olie gegee. Verder het Hy ook vir hulle skape en beeste gegee. Dit sal goed met hulle gaan. Hulle lewe sal wees soos ’n tuin wat genoeg water kry. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie. Die meisies sal dans omdat hulle bly is. Die mans, of hulle nou oud of jonk is, sal deelneem aan hierdie vrolikheid. Die Here sê Hy sal hulle gehuil verander in blydskap. Hy sal hulle troos. Hy sal hulle depressiewe gevoel wegvat en in die plek daarvan vreugde gee. “Ek sal vir die priesters meer as genoeg gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor al die goeie dinge wat Ek vir hulle sal gee.” Dit is wat die Here sê Hy sal doen. Die Here sê verder: “Uit Rama hoor ’n mens die hartseer gehuil oor iemand wat dood is. Dit is Ragel wat oor haar kinders huil. Hulle is dood. Sy wil nie toelaat dat iemand haar troos nie.” Maar die Here sê: “Hou op met huil en droog jou trane af. Jy sal beloon word vir al jou moeite wat jy vir jou kinders gedoen het. Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand. Daar is hoop vir die toekoms,” sê die Here. “Jou kinders sal na hulle eie land toe terugkom. Ek het gehoor dat Israel kla en sê dat Ek hulle swaar gestraf het. Hulle het gesê: ‘Ons was soos wilde kalwers wat nog geleer moes word. Ons moes leer om gehoorsaam te wees. Here, help ons om weer reg teenoor U te lewe, want U is die Here ons God. Ons het die rug vir Hom gedraai, maar ons was agterna spyt daaroor. Ons kon onsself skop dat ons so onnosel was. Nou is ons skaam en verleë oor wat ons gedoen het toe ons jonk was.’” Die Here het gevra: “Is Israel nie nog steeds my seun vir wie Ek baie lief is nie? Is hy nie my lieflingskind nie? Selfs al moes Ek hom beskuldig dat hy verkeerde dinge doen, het Ek steeds ’n sagte plekkie vir hom gehad. Ek voel jammer vir hom; daarom sal Ek sag met hom werk.” Dit is wat die Here sê. “Plant vir julle rigtingwysers langs die pad. Maak merke op die pad. Kyk baie mooi waarlangs julle destyds gegaan het. Kom terug, Israel! Kom terug na julle stede. Hoe lank sal julle nog hink op twee gedagtes? Julle is mense wat aan My ontrou is. Ek gaan iets nuuts en anders laat gebeur: so vreemd as wat dit is vir ’n vrou om ’n man te beskerm, so vreemd sal dit wees wat met Israel gaan gebeur. Ek gaan Israel as ’n beskermer laat optree.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “As Ek Israel se omstandighede verander in Juda en in al hulle stede, sal hulle weer sê: ‘Mag die Here jou voorspoedig maak, Jerusalem!’ Jerusalem is die Here se spesiale woonplek. Al die mense in die stede en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal rus gee aan al die mense wat moeg is. En as daar mense is wat honger is, sal Ek vir hulle kos gee.” By hierdie punt het ek wakker geword en om my rondgekyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam. Die Here het gesê: “Die tyd het nou gekom dat Ek die mense van Israel en Juda meer sal maak. Ek sal ook die getalle van die diere meer laat word. In die verlede het Ek hierdie volk se wortels uitgetrek. Ek het hulle afgebreek. Ek het hierdie volk skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge oor hulle gebring. Maar Ek sal net mooi die teenoorgestelde doen in die toekoms. Ek sal hulle weer plant net soos ’n mens ’n boom plant. Ek sal hulle weer ’n nasie maak wat ’n reg op ’n bestaan het. Soos ’n gebou steen vir steen opgebou word, so sal Ek hulle ook weer as ’n volk opbou,” sê die Here. “Die mense sal nie langer hierdie spreekwoord gebruik nie: ‘Die ouers het druiwe geëet wat suur is, maar die kinders se mond het op ’n plooi getrek van die suur smaak.’ Elke mens sal doodgaan as gevolg van die verkeerde goed wat hy self gedoen het. Dit is die mens wat die suur druiwe geëet het se eie mond wat op ’n plooi sal trek.” Die Here sê: “Die dag sal kom dat Ek ’n nuwe ooreenkoms met Israel en Juda sal maak. Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie. Maar so sal die nuwe ooreenkoms lyk wat Ek later met Israel sal maak: Ek sal dit wat Ek van hulle verwag, in hulle gedagtes plant. Hulle sal in hulle hart weet wat Ek van hulle verwag. Dan sal Ek hulle God wees en hulle sal my eie mense wees. Dit sal nie vir hulle nodig wees om hulle bure of familie te leer en vir hulle te sê: ‘Lewe naby aan die Here dat julle Hom kan ken’ nie. Almal, klein en groot, sal reeds hierdie naby kennis van My hê,” sê die Here. “Hulle sal weet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. En Ek sal al die slegte goed vergewe wat hulle gedoen het. Ek sal nooit eens weer dink aan die verkeerde goed wat hulle gedoen het nie.” Dit is die Here wat die son gee sodat daar daglig is. Hy gee ook die maan en die sterre om in die nag lig te maak. Dit is ook Hy wat die see laat beweeg om golwe te maak. Sy Naam is die Here. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: “Net so min as wat Ek hierdie natuurwette sal laat ophou werk, net so min is die kans dat Ek Israel ooit sal verwerp. Die hemel kan eintlik nie gemeet word nie. En die fondasie van die aarde kan eintlik nie ondersoek word nie. Net so min as wat dit gedoen kan word, net so min sal Ek daaraan dink om die mense van Israel weg te gooi oor die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Dit is wat die Here sê! Die Here sê: “Daar sal ’n dag kom dat die hele Jerusalem weer vir My opgebou sal word. Die bouwerk sal van die Gananeltoring tot by die Hoekingang gedoen word. ’n Maatband sal van hierdie ingang af gespan word tot by die heuwels van Gareb en van daar tot by Goa. ’n Groot gebied sal vir die Here afgesonder word. Dit sluit in die begraafplaas en die ashoop in die vallei. Verder ook die hele veldgedeelte so ver as die Kidronspruit. En in ’n oostelike rigting tot by die ingang bekend as die Perde-ingang. Jerusalem sal nooit weer ingeneem of verwoes word nie.” Die Here het weer met Jeremia gepraat in die tiende jaar wat Sedekia koning van Juda was. Nebukadnesar was toe al agtien jaar koning van Babel. In dié stadium was Jerusalem omsingel deur die Babiloniese koning se leër. Die mense van Jerusalem was binne-in die stad vasgevang. Jeremia self was ’n gevangene in die paleis van die koning van Juda. Hy moes net in die binnehofgedeelte bly waar die wagte gebly het. Koning Sedekia het hom hier laat sit omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek sal hierdie stad oorgee in die mag van die koning van Babel. Hy sal die stad inneem. Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom na die koning van Babel toe vat. Hy sal direk met die koning van Babel te doen kry. Hulle sal persoonlik met mekaar praat. Nebukadnesar sal koning Sedekia Babel toe vat en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee. Dit sal julle nie help om teen die Babiloniërs te baklei nie, want julle kan hulle nie wen nie.” Die Here het in daardie tyd vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond daar by Anatot. Jy het die eerste reg om dit te koop.’” En net soos die Here gesê het, het Ganamel toe na my toe gekom waar ek opgesluit was in die paleis se binnehof. Hy het vir my gesê: “Koop my grond daar by Anatot in die grondgebied van Benjamin. Jy het die eerste opsie om dit te koop voordat ander mense die kans kry om die grond te koop. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my oor die grond gepraat het. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom sewentien silwer munte daarvoor betaal. Toe het ek die koopkontrak geteken en dit verseël terwyl daar getuies was wat gesien het wat ons doen. Daarna het ek hom die sewentien silwer munte betaal wat ek afgeweeg het. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel ingehad. Ek het toe die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat nie verseël was nie, gevat en ek het dit vir Baruk die seun van Nerija gegee. Nerija was die seun van Magseja. Ek het al hierdie goed voor my neef Ganamel en die getuie wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Ek het dit ook gedoen voor al die Jode wat in die binnehof waar die wagte gebly het, gesit het. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê: “Die Here, die God van Israel, is sterker as alles en almal. Hy het gesê: ‘Vat die verseëlde en die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd gebêre kan word. Want eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’” Toe ek die koopkontrak vir Baruk gegee het, het ek gebid en gesê: “Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is te moeilik vir U om te doen nie! Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar dit is ook so dat U die kinders straf vir die verkeerde goed wat hulle ouers gedoen het. Here, u mag is baie groot. Mense praat van U as die Here wat sterker as alles en almal is. U is slim. U weet alles. U kan ook goed doen wat vir die mense te wonderlik is om te verstaan. Daar is niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het. Destyds het U in Egipte buitengewone dinge gedoen. U het tekens en wonders gedoen. U doen dit nog steeds vandag in Israel en onder alle mense. Selfs vandag is U steeds daarvoor bekend. “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak. U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees. Ons voorouers het toe hierdie land ingeval en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle wou nie na U luister nie. Hulle wou ook nie die riglyne wat U vir hulle gegee het oor hoe hulle moet lewe, volg nie. Hulle het omtrent niks van alles wat U van hulle verwag het, gedoen nie. Dit is hoekom hierdie slegte goed hulle nou tref. Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het reeds walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. Al die gevegte, die tekort aan kos en die siektes het reeds die inwoners van die stad baie swak gemaak. Alles gebeur nou net soos U gesê het dit sou. En tog, Here, het U vir my gesê om ’n stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies geld daarvoor betaal het. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem.” Die Here het vir Jeremia gesê: “Ek is die Here, die God van al die mense van die wêreld. Is daar iets wat te moeilik is vir My om te doen? Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, sal Jerusalem inneem. Die Babiloniërs wat nou buite die mure van die stad baklei, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Hulle sal die huise afbrand. Die vyand sal ook die huise afbrand waar die mense bo-op die dak wierook vir Baäl gebrand het. Die mense het ook by hierdie huise ander gode vereer deur van hulle wyn uit te gooi. Hierdie verering van die gode het My baie kwaad gemaak. “Van die vroegste tye af al het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My verskriklik kwaad gemaak met die goed wat hulle doen. Vandat Jerusalem gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad My nog altyd net kwaad gemaak. Ek wil hê dit moet voor my oë verdwyn. Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte goed wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete en die mense van Jerusalem maak My woedend. My mense het die rug vir My gedraai. Dit het nie eens gehelp dat Ek aangehou en aangehou het om hulle te leer wat reg en wat verkeerd is nie. Hulle het hulle nie aan My gesteur nie. Hulle wou nie leer nie. Hulle was so vermetel om hulle mislike afgodsbeelde in my tempel te kom sit. Dit het die tempel ’n plek gemaak wat nie aanvaarbaar was om te gebruik nie. Hulle het ook in die Hinnomvallei offerplekke vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle eie kinders op die altare verbrand om in Molek se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eens in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. Hulle het Juda so ’n slegte ding laat doen.” Die Here, die God van Israel sê: “Ek wil nou nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel dat hierdie stad onder die beheer van die koning van Babel sal kom as gevolg van die gevegte, die gebrek aan kos en die siektes. Maar hoor gerus hier, Ek sal my mense weer bymekaarmaak wat Ek weggejaag het omdat Ek kwaad was. Dan sal Ek hulle terugbring uit al die lande waar Ek hulle laat beland het. Hier sal Ek hulle veilig in Jerusalem laat bly. Dan sal hulle weer my volk wees en Ek sal hulle God wees. Ek sal maak dat hulle almal sal saamstem om vir altyd net vir My te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste ding wees om te doen. Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie. Ek sal hulle nooit in die steek laat nie. Ek sal ook nie ophou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My te respekteer. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie. Dit sal vir My baie lekker wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal sorg dat hierdie land weer hulle vaste blyplek sal wees. Dit is my grootste begeerte om te sien dat dit gebeur. “Ek het al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur. Maar soos Ek dit veroorsaak het, sal Ek nou weer goeie dinge vir hulle doen. Ek het belowe dat Ek dit sal doen.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen. Julle land is nou verlate omdat die Babiloniërs dit verwoes het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het. Maar die Here sê: “Grond sal weer gekoop en verkoop word. Die grond sal vir geld verkoop word. Koopkontrakte sal opgestel, geteken en voor getuies verseël word. Dit sal gebeur in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem. Verder ook in die stede in Juda, in die heuwellande, in die stede teen die westelike hange en die stede in die Negev in die suide. Ek sal sorg dat omstandighede verander. Dit sal weer met hulle goed gaan.” Ek, die Here, sê dit! Terwyl Jeremia nog in die binnehof van die paleis waar die wagte bly, opgesluit was, het die Here weer met hom gepraat. Dit is die Here wat die aarde gemaak het. Verder het Hy die aarde ’n vorm gegee en leefbaar gemaak. Hy is bekend as die Here en Hy sê: “As jy My ’n vraag vra, sal Ek jou ’n antwoord gee. Ek sal vertel van ongelooflike dinge. Hierdie dinge is nou nog vir jou ’n geheim, jy weet niks daarvan nie. Die Here wat die God van Israel is, sê: Dit was seker so dat julle boumateriaal nodig gehad om die mure van die stad sterker te maak teen die stormtaktiek van die vyand. Daarom het julle van die huise in die stad en selfs dele van die koning se paleis afgebreek. Maar dit sal nie help nie, die Babiloniërs sal steeds in die stad inkom. Baie mense in die stad sal doodgaan omdat Ek hulle in my woede sal tref. Ek wil niks weet van die mense van die stad nie, want hulle het baie verkeerde dinge gedoen. “Maar julle kan weet, die tyd sal weer kom dat Ek die mense van die stad gesond sal maak. Ek sal sorg dat dit weer baie goed met hulle gaan. Dit sal met die stad ook goed gaan. Hulle sal weer veilig voel. Ek sal die omstandighede van Israel en Juda verander en hulle weer die volk maak wat hulle vroeër was. Soos ’n mens vuilheid afwas, so sal Ek van al die verkeerde goed wat hulle gedoen het, ontslae raak. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teen My. Maar Ek sal hulle daarvoor vergewe. Jerusalem sal vir My baie blydskap bring. Al die nasies van die wêreld sal goeie dinge oor My sê en My met respek behandel. Hierdie nasies sal van vrees aan die bewe gaan as hulle hoor van al die goeie dinge wat Ek vir my mense gedoen het.” Die Here het weer gesê: “Julle sê: ‘Hierdie land is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer in die leë strate van Jerusalem en in die stede van Juda bly wees en vrolik lag. Die mense sal ook weer troues hou en vrolik wees saam met die bruidspare. Ander mense weer sal opgewekte liedere sing om vir die Here te wys hoe dankbaar hulle teenoor Hom is. Hulle sal by die tempel sing: ‘Loof die Here wat sterker as alles en almal is, want Hy is goed. Sy liefde en getrouheid hou nooit op nie.’ Ek sal die gevangenes wat uit die land weggeneem is, terugbring,” sê die Here. Die Here het weer gesê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere in en om die stede is weg. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape laat wei. Daar sal weer genoeg skape in die land wees om te tel. Dit sal gebeur in die stede van die heuwelgebied, die westelike hange, die Negev in die suide. Verder ook in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die stede van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!” Die Here sê ook: “Die dag sal kom dat Ek al die beloftes wat Ek aan Israel en Juda gemaak het, waar laat word. Dit is ook dié tyd dat Ek ’n wettige erfgenaam van Dawid koning sal maak. Hy sal sorg dat mense deur die hele land regverdig behandel word en doen wat reg is. In dié tyd sal Juda uit die mag van hulle vyande gered word. Jerusalem sal weer ’n veilige plek vir mense wees om te bly. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons.’” Die Here sê: “Daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid koning wees oor Israel. Daar sal ook altyd priesters wees wat nakomelinge is van die Leviete. Hulle sal al die soorte offers bring om My mee te dien.” Die Here het toe vir Jeremia gesê: “Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om hierdie ooreenkoms verbreek te kry, dan, en dan alleen, sal my ooreenkoms met Dawid wat in my diens was, verbreek kan word. Net as dit gebeur, sal hy nie meer ’n opvolger uit sy familie as koning hê nie. Dieselfde geld vir die priesters uit die Leviete. Daar sal altyd iemand van hulle vir My by die tempel werk. Dit is nie moontlik om die sterre te tel nie. Dit is ook onmoontlik om vas te stel hoeveel sand op die strande is. Die nageslag van Dawid wat kom, sal so baie word dat hulle soos die sterre en die seesand sal wees. ’n Mens sal hulle nie kan tel nie. Dieselfde geld ook vir die Leviete.” Die Here het weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê: “Het julle gehoor wat die mense sê? Hulle sê dat die Here Juda en Israel gekies het. Maar nou verwerp Hy hulle. Omdat die Here dit gedoen het, sien ander nasies met minagting op hulle neer. Hulle dink nie Israel en Juda is werd om ’n nasie genoem te word nie.” Maar die Here antwoord so: “Ek sal nie die wette van die nag en die dag of die vaste patrone van die aarde en die hemel verander nie. Net so min as wat Ek dit sal doen, net so min sal Ek my mense verwerp. Ek sal ook nie die nageslag van Jakob en Dawid vergeet nie. Ek sal ook nie van plan verander dat een van Dawid se nageslag sal regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Wat sal gebeur, is dat Ek hulle omstandighede weer normaal sal maak soos dit tevore was. Hulle sal weer in rus en vrede in hulle land bly. Ek sal mooi versigtig met hulle werk.” In ’n stadium was koning Nebukadnesar van Babel met sy leër besig om teen Jerusalem en die stede van Juda te veg. Saam met sy leër het ook die leërs van ander nasies wat onder sy gesag was, geveg. Gedurende hierdie tyd het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na Sedekia wat die koning van Juda is en sê vir hom: Hoor ’n bietjie wat sê die Here wat die God van Israel is. Hy sê: Ek gaan Jerusalem aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand. Sedekia, jy sal nie wegkom nie. Hulle sal jou vang en aan Nebukadnesar oorgee. Jy en hy sal persoonlik ontmoet voordat hy jou as gevangene na Babel toe sal stuur. “Maar, koning Sedekia, luister na die belofte wat die Here maak. Hy sê: Jy sal nie in ’n geveg doodgaan nie. Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met die konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: ‘Ag, ons koning is dood!’” Die Here sê dat Hy sal sorg dat dit so gebeur. Jeremia het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen. Hy het die boodskap vir koning Sedekia gegee. In dié stadium was die Babiloniese leërs besig om teen Jerusalem, Lakis en Aseka oorlog te maak. Hierdie stede was die enigste stede van Juda met mure om wat nog nie ingeneem was nie. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat koning Sedekia ’n ooreenkoms met al die mense in Jerusalem gemaak het om hulle slawe vry te laat. Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Jood moes meer ’n ander Jood se slaaf wees nie. Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het, maar later anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vry laat gaan het, weer hulle slawe gemaak. Die Here het toe deur Jeremia vir hulle gesê: “Ek, die Here wat die God van Israel is, sê: Lank terug het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Toe het Ek met hulle ’n ooreenkoms gemaak. Ek het hulle opdrag gegee om aan die einde van ses jaar elke Hebreër wat ’n slaaf is, vry te laat. Julle voorouers het dit nooit gedoen nie. “Toe julle onlangs begin besef het dat dit verkeerd is, het julle reg gedoen om My te gehoorsaam. Julle het julle Joodse slawe vrygelaat. In my tempel het julle dit toe met ’n ooreenkoms met My vasgemaak. “Maar nou het julle julle woord gebreek. Julle het My beledig met wat julle doen. Julle kan mos nie nou die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe maak nie!” Die Here sê: “Julle het nie na My geluister nie. Julle wou nie julle eie mense wat julle slawe was, vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vry laat gaan om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en kosskaarste. As die nasies van die wêreld die toestand sien waarin julle is, sal hulle hulle doodskrik. Dit was die gebruik dat as ’n formele ooreenkoms tussen twee partye gemaak word, ’n kalf in twee dele gesny word. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die ooreenkoms met My verbreek het. Julle het julle nie gesteur aan wat ons afgespreek het nie. Daarom sal Ek julle middeldeur laat sny. Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die amptenare van die paleis, die priester en die gewone mense in die land wat die ooreenkoms verbreek het. Ek sal julle aan julle vyande oorgee. Hulle sal julle doodmaak. Julle lyke sal kos wees vir die roofvoëls en die wilde diere. Die leër van die koning van Babel het alreeds van julle af teruggetrek. Maar al is dit so, sal Ek koning Sedekia van Juda en sy amptenare aan hulle vyande oorgee. Hulle wil julle graag dood sien. Ek sal die Babiloniese leër opdrag gee om na Jerusalem toe terug te kom. Hulle sal weer teen die stad baklei. Hulle sal die stad inval en aan die brand steek. Verder sal Ek sorg dat al die stede van Juda soos ’n eensame en verlate plek sal wees waar niemand meer bly nie. Ek, die Here, sê dat dit so sal gebeur!” Die Here het met Jeremia oor die Rekabiete gepraat. In dié tyd was Jojakim die koning van Juda. Hy het gesê: “Gaan na die plek toe waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die Here te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en gee vir hulle wyn om te drink.” Ek het toe vir Jaäsanja wat die seun van Jeremia en die kleinseun van Gabassinja is, gaan haal. Verder ook al sy broers en seuns. Die hele Rekabiete-groep het mense gehad wat hulle belange op die hart gedra het. Ek het hulle na die tempel toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek in die tempel gegaan wat aan die volgelinge van Ganan behoort het. Ganan was die seun van Jigdalja. Hy het bekend gestaan as iemand wat aan God behoort. Hierdie kamer was langs die een wat deur die amptenare in die paleis gebruik is. Dit was ook reg bokant die kamer wat Maäseja die seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingang. Ek het bekers met wyn en bekers om uit te drink voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink. Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab die seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee dat nie ons of ons nageslag ooit wyn mag drink nie. Hy het ook gesê dat ons nie huise mag bou om in te bly nie. Ons moet altyd in tente bly. Verder mag ons ook nie graan of wingerde plant nie. As ons hierdie voorskrifte sou hou, sou ons lank kon bly in die land waar ons soos bywoners leef. Ons was nog altyd aan Jonadab gehoorsaam en het niks van hierdie goed gedoen nie. Vandat hy ons die opdrag gegee het om nie wyn te drink nie, het nie ons of ons vroue of ons kinders enige wyn gedrink nie. Ons bou nie huise om in te bly nie. Verder het ons ook nie wingerde of landerye met graan op nie. Ons bly in tente en ons gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab vir ons gegee het. Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek het, het ons bang geword vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou hier.” Die Here het toe vir Jeremia gesê wat hy moes doen. Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy het gesê: “Gaan na die mense van Juda en Jerusalem toe en sê vir hulle: Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees. Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie. Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle bly weier om na My te luister. Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur. Hulle het julle gewaarsku om op te hou om slegte goed te doen. Julle moes julle manier van doen verander en ophou om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede in hierdie land kon bly. Ek het die land vir julle en julle voorouers gegee. Maar julle wou nie na My luister om My te gehoorsaam nie.” Daarom sê die Here: “Ek sal al die rampe waarvan Ek gepraat het, oor Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle nie na My wou luister nie. Julle het julle ook nie aan My gesteur toe Ek julle geroep het nie. Julle het geweier om My te antwoord.” Maar vir die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê: Julle het julle voorvader Jonadab gehoorsaam in alles wat hy gevra het. Julle het al sy voorskrifte uitgevoer soos hy van julle verwag het. Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd van die mense wees wat deel is van Jonadab se nageslag wat My sal dien. Dit belowe Ek,” sê die Here. Die Here het weer vir Jeremia ’n opdrag gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim die seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê: “Kry vir jou ’n boek en skryf alles neer wat Ek vir jou gesê het oor Israel, Juda en die ander nasies. Begin so ver terug toe Josia koning was en Ek die eerste boodskap vir jou gegee het. Skryf dan verder al die ander dinge neer wat Ek vir jou gesê het, ook dit wat Ek nou vir jou gaan sê. Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle hoor van al die slegte dinge wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle kan vergewe vir die verkeerde en slegte goed wat hulle gedoen het.” Jeremia het toe vir Baruk die seun van Nerija geroep. Baruk het alles wat Jeremia hardop vir hom voorgesê het, in ’n boek neergeskryf. Die boek was in so ’n vorm dat dit opgerol kon word. Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie. Maar gaan jy môre, wanneer dit die dag is waarop mense sonder kos bly, na die tempel toe. Gaan lees vir die mense uit hierdie boek wat die Here sê. Mense van al die stede in Juda sal môre daar wees. Miskien sal hulle bid en ophou om op so ’n slegte manier te leef. Die Here is baie kwaad. Hy het gesê dat vreeslike goed met sy eie mense gaan gebeur. Hy gaan hulle straf.” Baruk het alles gedoen wat Jeremia hom gesê het om te doen. Hy het wat in die boek geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees. Dit het gebeur op ’n vasdag in die herfs, ’n dag waarop niemand moes eet nie. Jojakim was toe in sy vyfde jaar as koning van Juda. Die mense het uit die stede in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon. Baruk het uit die boek wat hy vir Jeremia geskryf het vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja se kantoor in die tempel toe hy dit gedoen het. Gemarja was die seun van Sallum, wat sekretaris in die paleis van die koning was. Hierdie kamer was in die boonste voorhof naby die nuwe ingang van die tempel. Miga, ’n seun van Gemarja en kleinseun van Safan, het ook gehoor wat Baruk uit die boek voorgelees het. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die sekretaris, Delaja die seun van Semaja, Elnatan die seun van Akbor, Gemarja die seun van Safan, Sedekia die seun van Gananja en ook nog ander amptenare. Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het, het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om dit ook vir hulle te kom voorlees. Jehudi was ’n seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boek vir hulle voor te lees. Hy het gemaak soos hulle gevra het. Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.” Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, waar kry jy alles wat jy hier neergeskryf het? Het Jeremia vir jou gesê wat om te skryf?” Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.” Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!” Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het. Koning Jojakim het vir Jehudi gestuur om die boek te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl sy amptenare bygestaan het. Dit was in die winter. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit. Baruk het die boek in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boek te sny. Hy het deel vir deel van die boek uitgesny en in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy alles verbrand het. Die koning en sy beamptes het na alles geluister wat geskryf was, maar dit het hulle nie bang gemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur om te wys dat hulle jammer was oor alles wat hulle gehoor het hulle verkeerd doen nie. Elnatan, Delaja en Gemarja het die koning gesmeek om nie die boek te verbrand nie, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie. Daarna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja en ook vir Selemja opdrag gegee om Baruk en Jeremia te gaan vang. Seraja was ’n seun van Asriël en Selemja ’n seun van Abdeël. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit het gebeur na die episode toe die koning die boek stuk vir stuk verbrand het. Hy het gesê: “Kry vir jou ’n ander boek en skryf alles weer neer wat in die boek gestaan het wat Jojakim verbrand het.” Die boek was weer in ’n vorm dat dit opgerol kon word. “Sê vir koning Jojakim die Here sê: Jy het die boek verbrand omdat daarin gestaan het dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes. Geen mens of dier sou oorleef nie.” Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: “Hy sal nie opvolgers uit sy familie hê om die koningskap van Dawid te laat aangaan nie. Sy lyk sal buite weggegooi word. Hy sal nie begrawe word nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag. Ek sal hom straf. Maar nie vir hom alleen nie, ook sy familie en sy amptenare. Ek sal dat al die rampe wat Ek beloof het die mense van Juda en Jerusalem tref. Hulle wou mos nie na my waarskuwings luister nie!” Jeremia het toe weer ’n boek gevat en vir sy sekretaris Baruk gesê wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit was in die boek wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog gedagtes bygesit wat baie soos die ander was. Sedekia was die seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning van Juda aangestel in die plek van Jojagin, wat ’n seun van Jojakim was. Maar nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle enigsins gesteur aan wat die Here deur Jeremia gesê het nie. In elk geval, koning Sedekia het twee mans na Jeremia toe gestuur. Hulle was Jukal, ’n seun van Selemja, en Sefanja, ’n seun van Maäseja. Sefanja was ’n priester. Hulle moes vir Jeremia vra om namens hulle tot die Here te bid. Jeremia was toe nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense. Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek. In dié stadium het die Babiloniese leër Jerusalem omsingel en van die buitewêreld afgesny. Maar toe hulle van die Egiptiese opmars hoor, het hulle van Jerusalem af teruggetrek. Die Here die God van Israel het met Jeremia gepraat. Hy het gesê: “Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om te kom uitvind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help. Maar omdat hulle nou terugtrek, sal die Babiloniërs terugkom en weer teen die stad kom veg. Hulle sal Jerusalem inneem en afbrand. Sê vir hulle Ek sê: Moenie julleself flous en dink die Babiloniërs sal wegbly nie. Hulle kom vir seker terug. Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, dit sal niks help nie. Hulle sal doodgewoon optrek en Jerusalem aan die brand kom steek.” Die leër van die Babiloniërs het teruggetrek van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was. Jeremia wou toe weggaan van Jerusalem af na die grondgebied van Benjamin. Hy wou gaan kyk het na die stuk grond daar wat sy erfdeel sou wees. Maar toe Jeremia by die Benjaminhek wou uitgaan, het ’n wag met die naam Jirija hom gevang en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie waar nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs toe oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die senior amptenare toe gebring. Hulle was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Sy huis is in ’n tronk verander. Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit. Daar het hy ’n baie lang tyd gebly. In ’n later stadium het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou by hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my, Jeremia?” Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het ’n boodskap vir u! U sal aan die koning van Babel oorgegee word.” Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het? Waar is daardie profete nou wat vir u gesê het dat die koning van Babel nie teen u of hierdie land sal optrek nie? U Majesteit, ek smeek u. Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis toe terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.” Koning Sedekia het toe opdrag gegee dat hulle Jeremia nie moes terugstuur na die tronk waar hy eers was nie. Hulle het hom na die gedeelte van die paleis gevat waar die wagte gebly het. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle elke dag vir Jeremia ’n brood moes gee wat van die bakkery af kom. Hulle moes daarmee aanhou solank daar nog brood in die stad te kry was. So is Jeremia dan in die wagte se deel van die paleis aangehou. Toe Jeremia op ’n keer met die mense gepraat het, het van die amptenare die dinge gehoor wat hy gesê het. Hierdie amptenare was Sefatja die seun van Mattan, Gedalja die seun van Pasgur, Jukal die seun van Selemja en Pasgur die seun van Malkija. Jeremia het gesê: “Die Here sê: As mense in Jerusalem wil agterbly, sal hulle doodgaan as gevolg van die oorlog, of van honger, of van epidemies. Maar as die mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle bly lewe. Ek, die Here, sê: Julle kan seker weet dat Jerusalem in die mag van die koning van Babel sal beland. Hy sal die stad inneem.” Die amptenare het vir die koning gesê: “Koning, Jeremia moet doodgemaak word. Hy het ’n slegte invloed op die soldate wat nog in die stad oor is. Die goed wat hy sê, breek die soldate se moed. Maar nie net die soldate s’n nie, ook dié van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie, hy doen net skade aan die mense.” Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.” Die amptenare het toe vir Jeremia gevat en in ’n leë put laat afsak. Hulle het toue gebruik om hom te laat afsak. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Dit het aan Malkija behoort. Hy was deel van die koning se familie. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in hierdie modder ingesink. ’n Baie belangrike amptenaar in die paleis met die naam Ebed-Melek het gehoor dat Jeremia in die put was. Ebed-Melek het uit Afrika gekom. In daardie stadium het die koning in die Benjaminhek gesit. Ebed-Melek het van die paleis af na die hek waar die koning was, gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit, hierdie mans het ’n verskriklike ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal van die honger doodgaan. Omtrent al die brood in die stad is op.” Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 van my mense saam met jou en trek Jeremia uit die put uit op voordat hy doodgaan.” Ebed-Melek het toe van die mense na die paleis toe saamgevat. Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak. Hy het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie.” Jeremia het toe so gemaak. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis gebly, in die gedeelte waar die wagte gebly het. Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.” Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.” Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie. Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.” Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs gee my dalk oor aan die Jode wat reeds na hulle toe oorgeloop het. Hulle sal my mishandel.” Jeremia het geantwoord: “Hulle sal u nie oorgee nie. As u doen wat ek sê, sal u aan die Here gehoorsaam wees. Dit sal dan met u goed gaan. U lewe sal gespaar word. Die Here het vir my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: Al die vroue wat nog in die paleis oor is, sal uitgebring word na die offisiere van die Babiloniese koning. Hulle sal sê: ‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat. Hulle het u mislei. Noudat u in die moeilikheid beland het, waar is u vriende nou?’ “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitbring. U self sal ook nie kan ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en hierdie stad afbrand.” Sedekia het toe vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood! My amptenare mag nie hoor dat ek met jou gepraat het nie. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy nie vir ons wil sê nie, sal ons jou doodmaak.’ Jeremia, as dit wel so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.” Soos verwag, was dit nie lank nie of die amptenare het by Jeremia uitgekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom gevra het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Daar was niemand van hulle wat gehoor het wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie. Jeremia het in die wagte se gedeelte van die paleis gebly totdat Jerusalem die dag ingeneem is. In Januarie van die negende jaar wat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar en sy leër teruggekom en Jerusalem omsingel. Twee en ’n half jaar later, op die agtiende Julie, het die Babiloniërs dit reggekry om ’n gat in die muur te breek. Al die offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die hek in die middel gaan sit. Onder hierdie offisiere was Nergal-Saresar, wat van Sinmagir af kom, en Sarsekim, ’n hoofoffisier. Verder ook Nebu-Sarsekim, die aanvoerder van die leër en nog baie ander belangrike offisiere. Toe koning Sedekia en sy soldate die Babiloniërs by die stadsingang sien, het hulle gevlug toe dit donker word. Hulle het deur die koning se tuin beweeg en by die hek tussen die twee mure uit die stad uitgegaan. Daarvandaan het hulle in die rigting van die Jordaanvallei gegaan. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg en Sedekia op die vlakte by Jerigo ingehaal. Hulle het Sedekia gevang en hom na Nebukadnesar, koning van Babel, toe gebring. Nebukadnesar was in Ribla in die Hamatgebied. Daar het hy vir Sedekia gesê hoe hy hom gaan straf. Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar laat doodmaak. Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek en hom met kettings geboei. Toe het hy hom weggevat Babel toe. Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise in Jerusalem aan die brand gesteek. Hulle het ook die stadsmure afgebreek. Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in Jerusalem oorgebly het, weggevat uit hulle land na Babel toe. Hy het saam met hulle ook die mense weggevat wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. So ook die res van die mense van Juda. Maar Nebusaradan het party van die armste mense in Juda laat agterbly. Hy het vir hulle wingerde en landerye gegee. Koning Nebukadnesar het vir Nebusaradan ’n opdrag oor Jeremia gegee. Hy het gesê: “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.” Die koning van Babel het belangrike offisiere gehad wat vir Jeremia moes sorg. Hulle was Nebusaradan, die hoof van die koning se persoonlike wagte, Nebusasban, hoof van die paleis, en Nergal-Saresar, wat die hoof van die weermag was, en ook nog ander offisiere. Hulle het Jeremia uit die tronk laat haal en vir Gedalja opdrag gegee om vir hom te sorg. Gedalja was die seun van Agikam en die kleinseun van Safan. Hy het Jeremia na sy huis toe teruggevat. So kon Jeremia weer tussen sy eie mense bly. Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n opdrag gegee. Hy het gesê: “Sê vir Ebed-Melek wat uit Afrika kom, die Here wat die God van Israel is en sterker as alles en almal is, sê: Ek sal alles met Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie dinge nie, maar baie slegte dinge gaan gebeur. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur. Maar jy kan gerus wees, Ek sal jou red uit die hande van die mense vir wie jy so bang is. Omdat jy My vertrou het, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in ’n geveg doodgaan nie. Ek sal sorg dat jy veilig is.” Dit is wat die Here sê sal gebeur. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat Nebusaradan hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep mense van Jerusalem en Juda wat die Babiloniërs gevang het. Hulle was op pad na Babel as gevangenes. Nebusaradan was die hoof van die koning se persoonlike wagte. Hy het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het gesê dat slegte dinge hierdie land sal tref. Dit is presies wat nou gebeur. Hulle het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie. Hulle steur hulle ook nie aan wat Hy van hulle verwag nie. Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is meer as welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.” Net toe Nebusaradan wou loop, draai hy na Jeremia en sê: “As jy bly, gaan dan na Gedalja toe wat die seun van Agikam en die kleinseun van Safan is. Hy is deur die koning van Babel as bestuurder van die stede in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is vir jou om te kies, jy kan gaan net waar jy lus het.” Nebusaradan het toe vir Jeremia ’n voorraad kos en ’n geskenk gegee. Toe het hy hom laat gaan. Jeremia het toe na Gedalja toe gegaan. Hy was in Mispa. Jeremia het tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, by Gedalja gaan bly. Daar was nog offisiere en manskappe van Juda in die plattelandse gebiede afgesny. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja die seun van Agikam as bestuurder van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders en ook die arm mense wat nie uit Juda na Babel toe weggevat is nie. Hierdie offisiere en manskappe het na Gedalja toe in Mispa gegaan. Hulle was Ismael die seun van Netanja, Joganan en Jonatan die seuns van Kareag, Seraja die seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka en hulle manskappe. Gedalja het sy woord vir hierdie offisiere en hulle manskappe gegee. Hy het hulle belowe dat niks met hulle sal gebeur as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee nie. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hy het gesê: “Bly hier in die land en werk saam met die koning van Babel. Dan sal dit met julle goed gaan. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs onderhandel wat ons kom besoek. Maar oes julle druiwe, vrugte en olywe en bêre dit in houers. Bly in die stede waarvan julle nou in beheer is.” Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het, het hulle uit al die plekke waarnatoe hulle gevlug het, teruggekom na die land Juda toe. Hulle het eers na Gedalja in Mispa toe gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en vrugte begin insamel. Kort hierna het Joganan die seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe wat in die platteland was, na Gedalja in Mispa gekom. Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael, die seun van Netanja, gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie. Later het Joganan privaat met Gedalja in Mispa gepraat. Hy het aangebied om sonder dat iemand daarvan weet, vir Ismael te gaan doodmaak. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te kom vermoor? As hy dit regkry, sal al die Jode wat teruggekom het omdat u hier is, net weer uitmekaargedryf word. Daar sal ook niks oorbly van die groep mense in Juda wat nie uit die land weggevat is nie.” Maar Gedalja wou hom nie glo nie. Hy het gesê: “Jy mag Ismael nie vermoor nie, want wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.” In die middel van die herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy het uit die koninklike familie gekom en was een van die koning se offisiere. Gedalja het hulle vir ete genooi. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het Ismael en sy tien manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Hy het ook al die Jode doodgemaak wat daar by Gedalja was. Ismael het ook die Babiloniese soldate vermoor wat by Gedalja in Mispa was. Die volgende dag, nog voordat enigiemand iets van Gedalja se moord gehoor het, het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria in die Mispa-omgewing aangekom. Elkeen se baard was afgeskeer en hulle klere in repies geskeur. Hulle het ook snye aan hulle lywe gehad. Dit was duidelik dat hulle besig was om te rou. Hulle was op pad na die Here se tempel toe. Hulle wou daar vir Hom graanoffers bring en ook wierook brand. Ismael het uit Mispa uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy was droewig aan die huil. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Kom eers na Gedalja toe voordat julle verder gaan.” Toe hulle in die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 mense doodgemaak. Hy het die lyke in ’n put gegooi. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle sou vir hom die koring, gars, olie en heuning gee wat hulle in die veld opgegaar het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ook ’n groot put gegrawe om water in op te vang. Dit was in hierdie put wat Ismael die lyke gegooi het. Ismael het ook al die ander mense gevang wat in Mispa was. Onder hierdie mense was Sedekia se dogters. Nebusaradan het hulle by Gedalja in Mispa gelos sodat hy na hulle kon kyk en kon versorg. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek. Maar Joganan en die groep soldate wat by hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het. Hulle het toe al die mans saam met hulle gevat en teen Ismael gaan baklei. Hulle het by die groot dam naby Gibeon op hom afgekom. Toe die mense wat deur Ismael gevang is, vir Joganan en sy manskappe sien, het hulle geskree omdat hulle bly was. Hulle het ontsnap en vir Joganan teen Ismael begin help. Intussen het Ismael en agt van sy mense weggekom en na die Ammoniete toe gevlug. Joganan en sy offisiere het al die mense wat hulle uit Ismael se hande gered het, van Gibeon af weggevat. Onder hulle was al die mans, soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat Ismael gevang het. Hulle het hierdie mense na Gerut-Kimham naby Betlehem gevat. Daarvandaan sou hulle Egipte toe gaan. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael vir Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het. ’n Groot klomp mense het na Jeremia toe gekom omdat hy ’n profeet van die Here was. Onder hulle was al die offisiere van die weermag, maar ook Joganan die seun van Kareag en Asarja die seun van Hosaja. By hulle was daar ook nog mense uit elke vlak van die samelewing. Hulle het vir Jeremia gevra: “Luister asseblief na wat ons vra en praat dan namens ons met die Here wat jou God is. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die sterk volk wat ons eens was. Vra die Here jou God mooi om ons te wys wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.” Jeremia het hulle geantwoord en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal met die Here wat julle God is, praat oor wat julle graag wil weet. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord vir julle is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.” Hulle het vir Jeremia gesê: “Ons roep die Here self as ’n getuie teen ons as ons nie doen wat Hy vir ons sê om te doen nie. Hy is eerlik en sal die waarheid praat. Of ons nou daarvan hou of nie, ons sal die Here ons God gehoorsaam. Dit was tog ons idee om jou na Hom te stuur om raad te vra. Dit sal goed met ons gaan as ons aan Hom gehoorsaam is en doen wat Hy sê.” Na tien dae het die Here vir Jeremia ’n antwoord gegee. Jeremia het toe vir Joganan en die offisiere en ook die gewone mense laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die Here wat die God van Israel is, gestuur om raad te vra. Hier is sy antwoord: Julle moet hier in die land bly. As julle dit doen, sal Ek opbouend met julle werk. Ek sal nie dat dit met julle sleg gaan nie. Soos ’n boom sal Ek julle plant dat julle kan vestig en groei. Ek sal nie met julle maak soos ’n mens met ’n plant maak wat jy wil uitroei nie. So ’n plant trek ’n mens wortel en al uit die grond uit. Ek is jammer oor al die slegte dinge wat julle moes deurgaan. Moenie bang wees vir die koning van Babel nie. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle. Ek sal sorg dat hy nie langer oor julle baasspeel nie. Omdat Ek vir julle omgee, sal Ek die koning van Babel se hart sag maak. As dit gebeur, sal hy julle in julle land laat bly. Maar julle sal aan My ongehoorsaam wees as julle sê: ‘Ons wil nie in hierdie land bly nie,’ maar sê: ‘Nee, ons wil in Egipte gaan bly! Daar sal ons vry wees van oorloë, van oproepe om te gaan baklei en van ’n skaarste aan kos.’ As dit is wat julle sê, luister dan gerus wat die Here sê vir die groep van julle wat in Juda oor is. Die Here wat die God van Israel is en sterker is as alles en almal, sê: As julle vasskop en sê dat julle in Egipte wil gaan bly, sal gevegte en hongersnood julle agtervolg. En uiteindelik sal julle in Egipte doodgaan. Dit is wat vir elkeen van julle wag as julle daarop aandring om in Egipte te gaan bly. Julle sal daar doodgaan in ’n geveg of van honger omkom of deur die een of ander epidemie getref word. Niemand van julle sal kan wegkom of die rampe oorleef wat Ek julle daar sal laat tref nie.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Net soos Ek die mense van Jerusalem my woede en my straf laat voel het, net so maak Ek met elke mens wat na Egipte toe sal gaan. Mense sal skrik en bang word as hulle sien wat met julle gebeur. Hulle sal met julle spot en julle naam gebruik om ’n ander mens mee te vloek. Julle sal julle eie land nooit weer sien nie. “Die Here sê vir julle wat as ’n groep in Juda oorgebly het, die volgende: ‘Julle moenie na Egipte toe gaan nie!’ Onthou hierdie waarskuwing wat ek vandag vir julle gee. Julle maak ’n fout wat julle dood sal beteken. Julle het ewe mooi kom vra: ‘Sê net vir ons wat die Here se antwoord is en ons sal dit doen.’ Maar julle was nie eerlik nie. Vandag het ek mooi en duidelik vir julle gesê wat sy antwoord is, maar julle luister nie na wat die Here julle God vir julle sê om te doen nie. Om die waarheid te sê, julle het julle nog nooit aan enigiets gesteur wat Hy vir my gesê het om vir julle te sê nie. Julle kan daarom vir seker weet dat julle in Egipte sal doodgaan. Julle hou mos aan dat julle daar wil gaan bly. Dit sal in ’n geveg gebeur of julle sal van die honger doodgaan of ’n epidemie sal julle tref.” Toe Jeremia klaar gepraat het en gesê het wat die Here wou hê hulle moes hoor, het Asarja seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en party van die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan bly nie! Dit is Baruk die seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het. Hy wil hê die Babiloniërs moet ons in die hande kry. Hulle sal ons dan doodmaak of uit ons land uit wegvat Babel toe.” Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie luister na die Here se opdrag om in Juda te bly nie. Joganan en die offisiere vat toe al die Joodse mense wat eers na buurlande toe gevlug het en toe weer in Juda kom bly het, saam met hulle. Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters. Verder ook al die mense wat Nebusaradan in Gedalja se sorg gelos het. Nebusaradan was die hoof van die Babiloniese koning se persoonlike wagte. Jeremia en Baruk was ook onder die groep mense wat hulle met hulle saamgevat het. Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en het Egipte toe gegaan. Hulle het by die stad Tagpanges aangekom. By Tagpanges het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê: “Gaan na die farao se paleis wat in Tagpanges is. Daar is ’n stuk plaveisel voor die ingang van die paleis. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Maar doen dit so dat die mense van Juda jou sien as jy dit doen. Sê dan vir die mense van Juda die Here wat die God van Israel is, sê: Julle kan julle klaarmaak, Ek gaan Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Hy is in my diens. Ek sal hom sy troon laat neersit hier waar Ek hierdie klippe laat wegsteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor die plek opslaan. Nebukadnesar sal kom en Egipte aanval. Die mense se lot is reeds bepaal. Dié wat moet doodgaan, sal doodgaan. Die mense wat gevange geneem moet word, sal gevang word en dié wat deur geweld moet sterf, sal so sterf. Hy sal die tempels van die Egiptiese gode aan die brand steek. Hulle afgode sal deur die vuur verbrand word of as buit weggevat word. Hy sal Egipte skoonmaak soos ’n herder van insekte in sy klere ontslae raak. Daarna sal hy ewe rustig weggaan. Hy sal die pilare voor die tempel van die son in Egipte afbreek. Verder sal hy ook die tempels van die Egiptiese gode afbrand.” Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee vir die Judeërs wat in Egipte gebly het. Hulle was in Migdol, Tagpanges, Memfis en die Patrosstreek. Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: “Julle het al die slegte dinge gesien wat Ek Jerusalem en die stede van Juda laat oorkom het. Vandag lê hulle verwoes. Niemand bly meer daar nie. Al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het sowaar gegaan en vir ander gode wierook gebrand en hulle aanbid. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie. Hoeveel keer het Ek nie my profete gestuur om hulle te smeek om nie hierdie afskuwelike dinge te doen wat Ek so haat nie. Maar my mense wou nie luister nie en wou nie ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir hierdie gode te brand. Dit is daarom dat my woede oorgeborrel het en soos vuur geval het op die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net ’n hoop verlate bourommel.” En nou vra die Here wat die God van Israel is, vir julle: “Hoekom bring julle so ’n slegte ding oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie. Nie enige man, vrou of kind wat van Juda af kom, sal oorleef nie. Niemand sal oorbly nie. Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode hier in Egipte waar julle kom bly het! Al wat sal gebeur, is dat julle julleself sal vernietig. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot. Het julle al klaar die verkeerde dinge wat julle voorouers gedoen het, vergeet? Het julle van die verkeerde goed vergeet wat die konings en koninginne van Juda gedoen het? En wat van die verkeerde dinge wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het? Tot vandag toe het julle nie gewys julle is jammer nie. Niemand is ook bang omdat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit alles vir julle en julle voorouers gesê om te doen, maar julle het nie.” Daarom sê die Here wat die God van Israel is: “Ek het besluit om almal van julle te vernietig! Ek gaan ontslae raak van die hele Juda. Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aangedring het om in Egipte te bly, uitwis. Hulle sal in Egipte in geweld of van die honger doodgaan. Almal, van klein tot groot, sal op so ’n manier doodgaan. Mense sal skrik as hulle sien wat met julle gebeur het. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot. Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het. Hulle voorland is om dood te gaan in oorlog, van honger te sterf of die slagoffers van epidemies te wees. Niemand van die mense wat oorleef het in Juda toe die res van die mense na Babel toe weggevat is, sal in Egipte oorleef nie. Hulle het gedink dat hulle net tydelik in Egipte sou kom bly en dan permanent na Juda sou teruggaan. Maar net ’n paar mense sal die rampe in Egipte oorleef en dit regkry om na Juda toe terug te gaan.” ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gebly het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het. Verder ook nog uit ’n groep vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê: “Ons sal nie na die dinge luister wat jy sê van die Here af kom nie! Ons sal alles doen wat ons beloof het ons sal. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel. Ons sal ook drank uitgooi om te wys dat ons haar vereer. Dit is tog wat ons nog altyd gedoen het en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe ons dit gedoen het, het ons volop kos gehad. Dit het eintlik sommer baie goed met ons gegaan. Ons het nie probleme geken nie. Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel wierook te brand en drank uit te gooi as ’n offer aan haar, gaan dit sleg met ons. Ons het niks. Ons mense gaan dood in oorloë en van honger omdat daar nie kos is nie.” Die vroue het verder ook vir Jeremia gesê: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy dat toe ons dit gedoen het ons mans nie deel daarvan was nie?” Toe hulle klaar gepraat het, het Jeremia al die mans en die vroue geantwoord: “Dink julle die Here het nie geweet wat julle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook gebrand het vir die afgode. Die Here kon dit nie langer uitstaan dat julle hierdie slegte dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n hoop bourommel is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin bly. Die Here bring hierdie ellendes oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het nie gedoen wat die Here van julle verwag nie. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.” Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na wat ek van die Here af vir julle wat in Egipte bly, gekry het. Die Here sê: Julle en julle vroue het gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Nou hou dan by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen! Ek sê weer, hoor wat is die Here se boodskap vir julle. Hy sê: Ek het ’n eed gesweer en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel sit. My Naam sal nooit weer deur enige van die mense van Juda wat in Egipte is, genoem word nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n plegtige belofte maak om krag aan julle woorde te gee nie. Julle mag nooit weer sê: ‘So waar as die Here leef’ nie! Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie. Julle sal in oorloë kom en ’n skaarste aan kos hê. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.” Die Here sê: “Net ’n baie klein klompie van hulle sal nie doodgaan nie en na Juda toe terugkom. Hulle sal op die ou einde weet dat Ek die waarheid gepraat het en nie hulle nie. Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf. Farao Gofra is die koning van Egipte. Ek sal met hom maak net soos Ek met koning Sedekia gemaak het. Ek het Sedekia aan koning Nebukadnesar van Babel oorgegee. Hy was Sedekia se vyand en wou hom graag dood hê. Ek sal Gofra net so aan sy vyande oorgee wat hom so graag wil doodmaak.” Dit is wat die Here sê! Jeremia het ’n boodskap vir Baruk die seun van Nerija gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim, die seun van Josia, koning van Juda was. Dit was net nadat Baruk alles neergeskryf het wat Jeremia hom voorgesê het om te skryf. Hy het gesê: “Baruk, die Here wat die God van Israel is, sê: Jy het gesê: ‘Dit is klaarpraat met my! Ek kry alreeds so swaar en dan maak die Here my probleme net nog meer. Ek is al so moeg van my eie gesug en gekla, ek kan net nie rus kry nie.’ “Baruk, dit is wat die Here sê: ‘Ek is nou besig om af te breek wat Ek self opgebou het. Ek gaan die mense van Juda uitroei soos Ek ’n boom uit die grond sal uittrek, wortel en al. So sal dit oor die hele land gaan. Het jy die ambisie om ver in die lewe te kom? Moet dit liewer nie hê nie, want Ek gaan die mense vreeslik slegte goed laat oorkom. Maar Ek sal jou lewe bewaar waar jy ook al is.’” Wat hier volg, is wat die Here vir Jeremia oor die nasies gesê het. In die vierde jaar dat Jojakim koning van Juda was, het die Here met Jeremia oor Egipte gepraat. Dit het gegaan oor die Egiptiese koning farao Neko en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis by die Eufraatrivier verslaan. Jeremia moes vir die soldate van Egipte sê: “Kry julle wapens reg en ruk op vir die geveg! Ruiters, kry die perde reg en klim op! As julle julle helms opgesit het, julle spiese blink en reg het en julle beskermende harnasse aanhet, neem dan julle plek in vir die geveg! Maar wat sien Ek? Die Egiptiese leër is verskrik. Hulle het teruggedraai. Hulle beste vegters is verslaan en kies die hasepad sonder om eens terug te kyk. Hulle word van alle kante af bedreig,” sê die Here. “Selfs nie die vinnigstes kan wegkom nie. Die sterkste soldate kan ook nie ontsnap nie. Aan die noordekant by die walle van die Eufraatrivier struikel hulle en val. Wie is dit wat soos die stygende water van die Nyl is? Die water bruis op en stroom oor die land soos riviere wat vloei. Dit is die Egiptiese leër wat soos die water van die Nyl maak. Dit bruis soos ’n aanstormende rivier in vloed. Hulle sê dat hulle sal optrek en die aarde sal oorspoel. Hulle sal stede en die mense wat daarin bly, saam verwoes. Hits die perde aan om vorentoe te gaan, laat die oorlogswaens optrek! Laat al die bondgenote uit Etiopië, Libië en Lidia wat hulle wapens goed kan gebruik, opruk! Hierdie dag is die dag van die Here. Hy is sterker as alles en almal. Dit is ’n dag om wraak te neem op sy vyande en hulle terug te betaal. Dit sal ’n bloedige geveg wees. Baie mense sal doodgaan. Die groot klomp mense van die vyand wat in die noordelike deel van die land op die oewer van die Eufraatrivier sal omkom, sal vandag vir die Here wees soos offers wat gebring word. Egipte, jy wat soos ’n jongmeisie is, gaan Gilead toe en kry salf! Maar jy moet weet, al jou medisynes sal jou nie gesond maak nie. Die nasies het gehoor van die skande wat jou oorgekom het. Jou uitroepe van wanhoop word oral gehoor. Die een soldaat val teen die ander totdat hulle al twee saam neerslaan.” Die Here het nog dinge vir Jeremia gesê. Dit het gegaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val. “Gaan sê dit in Egipte vir almal om te hoor! Laat die mense dit ook in die stede Migdol, Memfis en Tagpanges hoor! Maak julle reg vir ’n geveg, want dit sal rof gaan in die oorlog. Hoekom het jou magtige god Apis geval? Dit is omdat die Here hom geslaan het dat hy platval. Die Here het baie van die soldate laat struikel en teen mekaar laat val. Hulle het gesê: ‘Kom laat ons teruggaan na ons eie mense en na die land waar ons gebore is. Laat ons net wegkom van ons vyand wat ons wil doodmaak!’ Hulle sal van die farao sê: ‘Die koning van Egipte is ’n windsak wat ’n kans deur sy vingers laat glip het.’” Die Here is Koning! Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: “So waar as wat Ek lewe, iemand gaan teen Egipte optrek wat soos Tabor hoog bo die ander berge sal uitstaan of soos Karmel bo die see. Pak julle goed op! Maak julle reg om uit Egipte weggevat te word! Die stad Memfis sal vernietig word. Niemand sal meer daar bly nie. Egipte is soos ’n mooi, jong verskalf. Maar ’n steekvlieg uit die noorde val haar aan. Egipte se huursoldate het soos vetgemaakte kalwers geword. Hulle het nie eens weerstand teen die vyand gebied nie. Die tyd van Egipte se ondergang het gekom. Dit is niks anders as ’n tyd van straf nie. Wanneer die vyand met mag en mening aangemarsjeer kom soos houtkappers met byle, sal die mense van Egipte wegvlug soos ’n slang wat saggies wegseil. Hulle sal die mense soos bome van ’n bos neerkap. Hulle sal dit regkry selfs al lyk dit of ’n mens nie in die bos kan ingaan nie,” sê die Here. “Die vyand se getalle is meer as ’n swerm sprinkane; daarom sal hulle dit regkry. Die mense van Egipte sal verneder word. Hulle sal aan die mense wat uit die noorde kom, oorgegee word.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes, straf saam met al die ander gode van Egipte. Ek gaan ook vir Egipte en haar konings, ja, ook vir die farao en dié wat op hom vertrou, straf. Ek sal hulle oorgee aan die mense wat hulle baie graag wil doodmaak, mense soos Nebukadnesar en sy offisiere. Maar as al hierdie verwoestende oorloë verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom bly.” Die Here sê dit sal gebeur! Die Here sê: “Moenie bang of moedeloos wees nie, Israel. Julle behoort aan My. Al is julle ver weg, sal Ek julle red. Ek sal jou nageslag laat terugkom uit die lande waar hulle gevangenes is. Israel, jou mense sal terugkom en rus en vrede hê. Daar is niks of niemand wat julle weer bang sal maak nie.” Die Here sê: “Moenie bang of moedeloos wees nie, Israel. Julle behoort aan My, Ek sal altyd by julle wees. Ek sal die nasies waarheen Ek julle weggedryf het, heeltemal vernietig. Maar Ek sal julle nie vernietig nie. Maar dit moet julle ook weet, Ek sal julle nie ongestraf laat bly nie. Ek moet julle straf, maar Ek sal dit op ’n regverdige manier doen.” Die Here het vir Jeremia dinge gesê wat oor die Filistyne gaan. Dit was nog voor die farao van Egipte vir Gasa aangeval het. Die Here sê: “Daar kom vloedwater uit die noorde wat die hele land sal oorspoel. Dit is ’n vyand wat kom. Hy sal die land en alles daarin verwoes. Dit raak die stede en die mense wat daarin bly. Die mense sal skree omdat hulle bang is. Al die mense wat in die land bly, sal hartseer huil. As die vyand verbyjaag, sal die mense die geluid van perde se hoewe en die gedreun van die wiele van oorlogswaens hoor. Verskrikte pa’s sal weghardloop sonder om eens terug te kyk waar hulle kinders is. Die tyd het gekom om al die Filistyne uit te roei. Dit is ook die tyd om die mense uit Tirus en Sidon wat hulle kan kom help, af te sny. Ek sal die Filistyne wat oorspronklik van Kreta af kom, vernietig. Die mense van Gasa sal in rou wees. Askelon is klaar verwoes. Hoe lank sal julle wat op die kusvlakte by die Middellandse See oorgebly het, nog huil en kla omdat julle rou? Swaard van die Here, hoe lank nog voor jy weer tot rus kom? Gaan terug in jou skede! Kom tot rus en gedra jou stil! Maar hoe kan die swaard stil wees as Ek, die Here, dit ’n opdrag gegee het om te doen? Almal in Askelon en die kusvlakte moes doodgemaak word. Ek, die Here, het gesê dat dit gedoen moet word.” Wat volg, is wat die Here oor Moab gesê het: Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal en Hy sê: “Dit sal ellendig gaan met die stad Nebo, want hy sal verwoes word. Die stad Kirjatajim sal verneder en ingeneem word. Die stad is sterker gemaak om vyande uit te hou, maar hulle sal in die skande kom as die stad afgebreek word. Moab se reputasie het in die slag gebly. In Gesbon het hulle ’n komplot teen Moab beplan. Hulle het gesê: ‘Kom ons keer dat die stad verder bly bestaan.’ Die stad Madmen sal ook stilgemaak word. Die vyand sal ook na hierdie stad toe kom om oorlog te maak. Uit Goronajim skree hulle: ‘Verwoesting! Alles is vernietig!’ Moab se mag is gebreek! Hoor hoe huil die kinders. Die mense klim al huilend die heuwels by Lugit uit. En op pad na Goronajim huil hulle verskrik oor al die verwoesting. Vlug vir julle lewe! Oorleef soos ’n wildedonkie in die woestyn! Jy dink jy is baie goed oor alles wat jy self reggekry het en omdat jy ryk is. Maar Ek het nuus vir jou, jy sal gevange geneem word. Jou god Kemos sal saam met die mense wat vir hom werk, na ’n ander land toe weggevat word. Jou vyand sal al jou stede verwoes. Nie een van jou stede sal gespaar word nie. Die valleie sal beskadig word en die vlaktes verwoes word net soos Ek, die Here, gesê het dit sal gebeur. As Moab vlerke gehad het, sou sy weggevlieg het. Moab se stede is almal verwoes, daar is nie meer mense wat daarin bly nie. Slegte dinge gaan gebeur met elkeen wat lui is om die werk te doen wat die Here gesê het hulle moet. Maar mense wat nie die mense doodmaak wat hulle moet nie, kan verwag dat slegte dinge met hulle gaan gebeur.” Die Here sê: “Moab leef van haar vroegste dae af al rustig. Hulle is nog nooit deur ’n ander volk uit hulle land weggevat nie. Moab is soos ou wyn wat laat staan is en nie van houer na houer oorgegooi is nie. Die smaak het nie verlore gegaan nie en die geur is nog net soos dit was.” Maar die Here sê: “Die tyd kom dat Ek mense sal stuur wat die wyn sal uitgooi. As hulle al die wyn uitgegooi het, sal hulle die wynkruike stukkend breek. As dit gebeur, sal Moab verleë wees omdat die afgod Kemos hulle nie gehelp het nie. Israel het ook destyds in die verleentheid gekom omdat hulle op Bet-El staatgemaak het.” Moab, hoe kan julle nog sê: “Ons is helde, baasvegters in die oorlog?” Die Here wat sterker as alles en almal is, die Koning, sê: “Moab en al haar stede sal verwoes word. Van haar beste jongmense is doodgemaak in gevegte. Baie binnekort gaan Moab deur ’n groot ramp getref word. Die land se ondergang kom vinnig nader. Almal wat naby aan Moab bly, kan solank begin huil oor hierdie land. Julle wat die reputasie van Moab ken, kan sê: ‘Die septer en die staf wat gewys het hoe sterk en trots die regering van Moab was, is nou gebreek.’ Julle wat in Dibon bly, klim van julle troontjie af en kom sit in die stof. Die vyand wat Moab vernietig, kom ook om teen julle te baklei. Die sterk plekke wat julle gebou het om julle teen julle vyande te beskerm is al klaar verwoes. Julle wat in Aroër bly, julle moet langs die pad gaan staan en kyk wat gebeur. Vra ’n bietjie vir die mense wat dit regkry om van die vyand af weg te kom wat het daar in Moab gebeur. Die antwoord is: ‘Huil en roep van hartseer uit, want Moab se mag is gebreek. Vertel vir almal, selfs tot by die Arnonrivier, dat Moab verwoes is!’ Die straf vir die stede op die hoogland het aangebreek. Die stede is Golon, Jahas, Mefaät, Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim, Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon, Kerijot en Bosra. Al Moab se stede wat naby en ver is, sal so gestraf word. Moab het sy krag verloor. Die land is magteloos soos ’n bul waarvan die horing afgesny is of soos iemand wie se arm gebreek is,” sê die Here. Hy sê ook: “Laat Moab slinger en val soos ’n dronk mens, want hy hou hom opstandig teen My. Laat Moab in sy eie braaksel rol sodat ander hom sal spot. Het jy nie met Israel die spot gedryf nie, Moab? Jy het met Israel gemaak soos ’n mens met iemand sou maak wat tussen diewe betrap word. Jy het op Israel neergesien. Burgers van Moab, vlug uit julle stede uit! Gaan bly in grotte soos duiwe wat hulle neste in die bek van ’n grot maak. Ons het gehoor dat Moab ’n baie groot dunk van hulleself gehad het. Hulle was baie hoogmoedig en arrogant. Ons het verder gehoor van Moab se vermetelheid, trots en selfvoldaanheid. Ek weet dat Moab verwaand was. Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals. Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres. Sibma is bekend vir sy wingerde. Ek treur meer oor Sibma se mense as oor Jaeser. Die takke van julle wingerd het vroeër so ver uitgesteek dat dit selfs tot by die Dooie See en Jaser gekom het. So wyd was julle mense versprei. Maar nou het ’n vyand wat julle wil verwoes, op julle toegesak. Hulle help hulleself aan julle somervrugte en julle druiwe. Moab was eens op ’n tyd ’n vrugbare plek. Maar nou het al die blydskap en vreugde uit Moab verdwyn. Julle blydskap is van julle af weggevat. Ek het gesorg dat daar nie meer wyn uit die wynpers kom nie. Daar is ook nie meer mense wat opgewek gesels terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat skree, maar hulle doen dit nie omdat hulle bly is nie. Om die waarheid te sê, die mense gil en skree van angs omdat hulle bang is. Die krete kan duidelik van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas gehoor word. Verder ook weer van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.” Die Here sê: “Ek sal dit stopsit dat mense na plekke toe gaan waar hulle offers bring en wierook brand om hulle gode op so ’n manier te eer. In my hart voel Ek bitter jammer vir Moab en vir die mense van Kir-Geres. My gevoel is soos wanneer ’n mens die hartseer klanke van ’n fluit hoor. Ek voel hartseer, want al hulle rykdom is weg. Hulle doen alles wat die mense gewoonlik doen as hulle rou. Almal loop met ’n kaalgeskeerde kop en met baarde wat afgesny is. Hulle het snymerke aan hulle hande en hulle dra klere van sak. Oral in Moab is mense besig om te huil asof iemand dood is. Hulle doen dit op die plat dakke van hulle huise en op die pleine in die stede waar die mense altyd bymekaarkom. Hulle doen dit,” sê die Here, “omdat Ek hulle gebreek het soos ’n kleipot wat niemand meer gebruik of voor omgee nie. Ag, hoe stukkend is Moab! Hoor hoe huil hulle! Moab is soos iemand wat wegdraai van ander omdat hy skaam is. Moab se bure dryf die spot met hulle. Maar as hulle al die verwoesting in Moab sien, skrik hulle.” Die Here sê: “Die vyand sal Moab aanval net soos ’n arend wat vinnig met uitgespreide vlerke op ’n prooi afduik. Hulle sal die stede van Moab inneem en die versterkte skuilplekke oorneem. Daardie dag sal die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee. Moab sal verwoes word en nie langer as ’n nasie beskou word nie omdat hulle arrogant teenoor My, die Here, opgetree het.” Die Here sê: “Vir julle wag daar vreeslike dinge, vanggate en lokvalle, Moab. As daar mense is wat van dié vreeslike dinge probeer wegvlug, sal hulle in ’n lokval beland. En dié wat so gelukkig is om die lokval te mis sal in ’n vanggat val. Ek sal sorg dat nie een van julle wegkom nie. Die tyd het gekom dat Moab gestraf moet word. Van die mense wat vlug, sal net so ver as Gesbon kom voordat hulle krag op is. Hulle sal nie verder kan gaan nie, want Gesbon, wat koning Sihon se stad is, is aan die brand. Hierdie vuur sal die hele land saam met al die mense wat opstandig is, verwoes. Hoe ’n tragiese geval is Moab nie! Julle het op julle god Kemos vertrou, maar dit het julle niks gehelp nie. Julle is vernietig! Die vyand het al julle kinders gevang en uit julle land weggevat. Maar eendag in die toekoms sal Ek weer Moab se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so wees!” So eindig die boodskap oor die straf van Moab. Hierdie deel gaan oor die mense van Ammon. Die Here sê: “Het Israel nie ’n nageslag wat die grond van Gad kan erf nie? Hoekom het die mense wat die god Milkom aanbid, dan hierdie grond vir hulle gevat? Hoekom bly hulle in hierdie stede? Die tyd kom dat ’n geveg sal uitbreek teen die stad Rabba van die Ammoniete. Al wat van die stad sal oorbly, is ’n hoop bourommel. Die naburige dorpies sal ook afgebrand word. Dan sal die mense van Israel kom en die land wat van hulle afgevat is, terugvat.” Die Here sê verder: “Huil gerus maar droewig, Gesbon, want die stad Ai is verwoes. Kla maar, julle wat in Rabba bly! Trek julle rouklere aan, huil en loop maar heen en weer omdat julle ontsteld is. Die vyand sal julle god Milkom wegdra uit julle land. Hulle sal ook die leiers van die Milkomgodsdiens en sy amptenare vang en saamvat. Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie. Julle is eintlik maar ’n ontroue klomp mense. Julle vertrou op julle rykdom en dink dat niemand julle kan aanval nie. Julle maak ’n groot fout! Ek, die Here, is sterker as alles en almal. Ek sê vir julle: van alle kante af sal vreeslike goed met julle gebeur. Julle sal uit julle land gejaag word. Elkeen van julle sal in sy eie rigting wegvlug. En daar sal niemand wees wat die mense wat vlug weer bymekaar sal bring nie. Maar eendag, as alles verby is, sal Ek weer Ammon se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!” Edom is in die kollig: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Is daar nie meer verstandige mense in Teman nie? Wat het geword van mense met gesonde verstand? Het hulle insig opgedroog? Draai om en vlug weg! Julle wat in Dedan bly, kruip in grotte weg! Ek gaan Edom met ’n ramp tref. Die tyd het gekom om met die mense af te reken. Is dit nie so dat die mense wat druiwe pluk, altyd iets in die wingerd los nie? En steel diewe wat in die nag inbreek nie net wat hulle wil hê nie? Maar Ek sal Edom kaal stroop. Ek sal al die wegkruipplekke oopmaak sodat niemand meer kan wegkruip nie. Al hulle kinders, familie en bure sal uitgewis word en Edom sal ophou bestaan. Maar los julle weeskinders vir My. Ek sal sorg dat hulle bly lewe. Julle weduwees kan ook op My staatmaak vir hulp.” Die Here sê: “As onskuldige mense swaar moes kry, verdien julle dit mos meer om gestraf te word. Julle sal nie ongestraf bly nie! Ek het gesweer, so waar as Ek leef, dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal ’n hoop bourommel word. Mense sal die naam as ’n vloekwoord gebruik en met die stad spot. Al die dorpies in Bosra se omgewing sal vir altyd verwoes lê.” Ek het nuus van die Here af gekry dat ’n boodskapper na die nasies gestuur is om te sê: “Span saam teen Edom. Maak julle reg vir ’n geveg!” Die Here sê: “Ek maak julle so klein onder die nasies, Edom, dat niemand meer iets van julle sal dink nie. Hulle sal julle verag. Die ander volke is baie bang vir julle. Julle dink ook vreeslik baie van julleself. Maar dit het julle eintlik ’n vals idee gegee oor hoe goed julle is. Julle bly ook in rotsskeure en domineer die hoogste dele van die heuwels. Maar al bly julle soos arende op die hoë pieke van die berge, sal Ek julle hard aarde toe bring. Ek, die Here, sê dit is wat sal gebeur! Almal sal aan die bewe gaan as hulle sien wat met Edom gebeur het. Mense wat daar verbygaan, sal ontsteld wees en na hulle asem snak oor al die rampe wat Edom getref het. Die vernietiging van Edom sal net so erg wees as toe Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing verwoes is. Niemand sal meer daar bly nie. Ek sal skielik op die mense van Edom afstorm soos ’n leeu wat uit die bosse by die Jordaan kom op soek na ’n prooi in die groen weivelde. Ek sal hulle uit hulle eie land laat weghardloop. Dan sal Ek ’n leier van my keuse oor hulle aanstel. Want wie kan met My vergelyk word? Wie kan dink om My uit te daag? Nie een van hulle leiers kan teen My opstaan nie. Luister mooi na wat die Here vir Edom en die mense van Teman beplan. Selfs die klein kindertjies sal uit hulle land weggevat word. Die res van die mense sal geskok wees oor wat met hulle gebeur. Wanneer Edom tot ’n val kom, sal die aarde skud. Hulle geskree sal so ver as die Rietsee gehoor word. Die vyand sal soos ’n arend maak wat sy vlerke sprei en hoog vlieg, en dan vinnig op sy prooi toesak. So sal die vyand met Bosra maak. Daardie dag sal van die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.” Oor Damaskus sê die Here: “Die mense in die stede Hamat en Arpad is geskok omdat hulle slegte nuus gehoor het. Hulle hart voel so onstuimig soos die see en kan nie tot rus kom nie. Damaskus se mense is moedeloos en wil net wegvlug. Hulle lewe word deur angs en vrees oorheers. Hulle voel bang en ellendig soos ’n vrou wat deur geboortepyne oorval word. Damaskus is ’n beroemde stad wat bekend is vir vrolikheid. Hoekom gaan dit dan ’n verlate plek word? Die dag as al hierdie dinge gebeur, sal die jongmans in die strate val en doodgaan. Al die soldate van Damaskus sal doodgemaak word. Dit is wat Ek, die Here, sê, en Ek is sterker as alles en almal. Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek. Al koning Ben-Hadad se versterkte skuilplekke sal afgebrand word.” Die volgende is wat die Here oor Kedar en die koninkryke van Gasor sê. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval. Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste! Die tente waarin hulle bly en ook hulle vee sal geroof word. Alles wat hulle in hulle blyplekke het, sal gevat word. Hulle kamele sal ook gesteel word. Die mense sal vir hulle skree: ‘Om elke hoek en draai is daar gevaar!’” Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.” Die Here se opdrag is: “Gaan val die volk aan wat so rustig bly. Hulle dink dat hulle baie veilig is. Hulle bly daar eenkant alleen sonder goed soos hekke en slotte om hulle te beskerm. Vat gerus al hulle kamele en hulle groot getalle vee vir julle as buit. Ek sal hierdie mense wat so op die rand van die woestyn bly, in alle windrigtings verjaag. Ek sal dat rampe hulle van alle kante af tref. Ek, die Here, sê so. Gasor sal ’n eensame en verlate plek word. Mense sal nie meer daar bly nie. Dit sal net ’n plek wees waar jakkalse bly.” Jeremia was ’n profeet van die Here. Die Here het vir hom sekere dinge oor Elam gesê. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het. Die Here wat sterker as alles en almal is, het gesê: “Elam se krag lê in sy goeie boogskutters. Maar Ek sal hulle krag vernietig deur hulle boë te breek. Ek sal dat die vyand van Elam al die mense van Elam in verskillende rigtings verstrooi. Dit sal wees soos winde wat Ek uit die vier windrigtings laat kom om hulle te verwaai. Daar sal nie ’n volk êrens wees by wie die mense wat uit Elam gevlug het, nie sal aanland nie. Ek sal die oorsaak wees dat Elam doodbang sal wees vir hulle vyande wat hulle so bitter graag wil doodmaak. Ek is so kwaad vir hulle dat Ek hulle gaan straf. Waar hulle ook al is, sal hulle in gevegte beland en doodgaan. Ek sal hulle heeltemal uitroei. Ek sal hulle konings en leiers vernietig en die regter van Elam wees. Dit sê Ek, die Here! Maar eendag in die toekoms sal Ek weer Elam se omstandighede verander,” sê die Here. Jeremia is ’n profeet van die Here. Wat volg, is ’n boodskap wat die Here vir Jeremia gegee het wat oor Babel en die land van die Babiloniërs gaan. Die Here sê: “Vertel vir die hele wêreld, sê dit oral. Skryf dit op ’n banier sodat almal dit kan sien. Moet niks wegsteek nie! Sê en skryf: Babel is ingeneem! Hulle afgode, Bel en Marduk, is verneder en verslae oor die vernietiging. Al Babel se afgode het in die skande gekom, want hulle is eintlik niks werd nie. Die afgryslike afgodsbeelde is ook verwoes. ’n Volk het uit die noorde gekom en Babel aangeval. Babel is so erg vernietig dat niemand meer daar sal kan bly nie. Al wat mens en dier is, het weggevlug.” Die Here God sê: “In hierdie tyd sal die mense van Israel en Juda weer bymekaarkom. Hulle sal huil omdat hulle jammer is oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. In dié gesindheid sal hulle na My toe kom en probeer om weer in my goeie boekies te kom. Hulle sal vra hoe om by Jerusalem uit te kom en soontoe begin gaan. Hulle sal besluit om ’n ooreenkoms met die Here te maak wat nooit weer sal ophou bestaan nie. Hierdie ooreenkoms sal ook nooit verbreek word nie.” Die Here sê ook van sy volk: “Hulle is soos verdwaalde skape. Hulle herders het hulle in ’n verkeerde koers gelei en gelos om in die berge rond te dwaal. Op die ou einde het hulle heeltemal in die heuwels verdwaal. Hulle het vergeet waar hulle rusplek is. Almal wat hulle teëgekom het, het hulle skade aangedoen. Hulle vyande het gesê: ‘As ons hulle aanval, doen ons niks verkeerds nie. Hulle het verkeerd gedoen. Dit is hulle wat die verkeerde dinge gedoen het wat die Here ongelukkig maak. Hy is hulle ware rusplek en hulle voorouers het Hom vir alles vertrou. Dit is teenoor Hom dat hulle verkeerd gedoen het.’” Die Here sê vir sy volk: “Vlug weg uit Babel! Gee pad uit die land van die Babiloniërs! Wees julle die voorbokke wat die koers wys vir die ander wat op pad terug is na julle eie land toe. Kyk mooi wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n sterk mag op die been bring uit nasies wat uit die noorde kom. Ek sal hulle teen Babel laat optrek en die stad van die buitewêreld laat afsny. Hulle sal die stad oorneem. Hulle sal dit regkry deur hulle wapens baie goed te gebruik en nie een teiken te mis nie. Die aanvallers sal die Babiloniërs beroof totdat hulle tevrede voel dat hulle genoeg gevat het.” Die Here sê: “Julle mense van Babel, julle het my mense wat Ek vir My uitgesoek het, besteel. En nou is julle boonop vrolik en bly daaroor. Julle gaan te kere soos ’n kalf wat in die gras rondspring of soos ’n perd wat runnik. Maar julle eie land sal nog met skande en skaamte oorval word. Julle sal verneder word en in die skande kom. Van al die volke sal die mense die minste van julle dink. Julle land sal ’n dorre en verlate woestyn word. Die Here sal sy woede op Babel uithaal. Dit sal ’n plek sonder mense word. Mense sal nie meer daar wil bly nie omdat dit so ’n verwoeste en verlate plek is. Mense wat daar verbyloop, sal geskok wees en fluit van verbasing oor die toestand van die plek.” Die Here sê: “Julle almal wat boogskutters is, omsingel Babel en maak julle reg om aan te val. Laat julle pyle sonder ophou op hulle reën. Die mense van Babel het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie. Skree maar gerus daar waar julle julle plekke ingeneem het om die stad. Babel het oorgegee. Die mure van die stad het omgeval. Die Here straf hierdie mense nou, julle hoef hulle nie te spaar nie. Doen aan hulle soos hulle aan ander mense gedoen het. Vat die mense wat op die lande werk en saai uit Babel weg. Doen dit ook met die mense wat die oes van die lande af inbring. Die mense wat gevangenes in Babel is, moet sorg dat hulle ontsnap as die gevegte aan die gang is. Hulle moet na hulle eie land en mense toe wegvlug.” Die Here sê ook: “Die mense van Israel is soos skape wat deur leeus uitmekaargejaag is. Eers het die koning van Assirië hulle begin eet en nou is Nebukadnesar, die koning van Babel, besig om hulle bene te kou.” Die Here wat die God van Israel is, is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die koning van Babel en sy land straf net soos Ek die koning van Assirië gestraf het. Verder sal Ek die mense van Israel na hulle land toe laat terugkom. Hulle sal weer in die omgewing van Karmel en Basan ’n bestaan maak. Die heuwelgebied van Efraim en Gilead sal vir hulle genoeg gee om van te leef. In hierdie spesifieke tyd sal ’n mens verniet soek na verkeerde dinge wat Israel en Juda sou gedoen het, want dit sal weg wees. Ek het ’n groep mense in die land laat agterbly toe ander van hulle volk uit die land weggevat is. En hierdie mense het Ek vergewe vir wat hulle verkeerd gedoen het.” Die Here sê: “Trek op en gaan baklei teen die Babiloniërs, van Meratajim af tot by Pekod. Agtervolg die mense, maak hulle dood en laat hulle heeltemal verdwyn. Doen alles presies soos Ek vir julle sê om te doen. ’n Mens hoor die geraas van oorlog en die groot verwoesting. Die Babiloniërs was soos ’n groot hamer wat die wêreld se mense verpletter het. Nou is dit hulle beurt om stukkend geslaan en gebreek te word. Die nasies sal hulle doodskrik as hulle die toestand van die Babiloniërs sien. Ek het vir jou ’n strik gestel, Babel, en jy het daarin getrap sonder dat jy eers geweet het. Jy is gevang omdat jy My, die Here, probeer aanvat het.” Die Here het die bêreplek van sy wapens oopgemaak. Hy het wapens uitgehaal wat Hom sou help om sy woede teen sy vyande te laat uitkom. Hy sê: “Ek, die Here, het ’n werk wat Ek in die land van die Babiloniërs wil doen. Val die Babiloniërs van alle kante af aan. Breek die skure oop waar hulle die graan bêre. Maak die mense op ’n hoop bymekaar soos ’n hoop graan. Vernietig alles! Laat niks en niemand oorbly nie! Vat selfs die bulle na die slagplek en maak hulle daar dood. ’n Baie, baie slegte tyd het vir Babel gekom. Die tyd van hulle straf het gekom.” Luister wat die mense wat uit Babel ontsnap het, te sê het. Hulle vertel in Jerusalem hoe die Here ons God wraak geneem het op die mense wat sy tempel vernietig het. Stuur jou gewapende manne na Babel. Laat hulle die stad omsingel sodat niemand kan ontsnap nie. Doen aan die Babiloniërs wat hulle aan ander mense en lande gedoen het. Hulle verdien dit, want hulle dink te veel van hulleself. Hulle het die Here se gesag uitgedaag. Daar is niemand wat soos Hy is nie. Hy is die Here van Israel. Die jongmense sal in die strate neerval en doodgaan. Al die Babiloniese soldate sal daardie dag sterf. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê vir die Babiloniërs: “Julle is arrogant. Ek is julle vyand. Die tyd het gekom dat Ek julle gaan straf. Julle is verwaand. Julle sal struikel en val. Daar is niemand wat julle sal help om weer op te staan nie. Ek sal julle stede aan die brand steek. Alles wat naby hierdie vuur is, sal afbrand.” Die Here sê: “Die mense van Israel en Juda is nie reg behandel nie. Die vyand wat hulle gevang het, het geweier om hulle vry te laat. Maar daar is iemand wat hulle help om vry te kom. Hy is baie sterk. Hy is die Here wat sterker as alles en almal is. Hy sal hulle belange op die hart dra en sorg dat hulle rus en vrede in hulle land sal hê. Die vooruitsigte vir die mense van Babel is nie goed nie. Hulle sal nie rus en vrede hê nie, maar probleme. Daar wag oorlog en dood vir die leiers van die Babiloniërs. Maar nie net vir hulle nie, ook vir die raadgewers en al die mense van Babel. Daar wag oorlog vir die waarsêers. Hulle sal gekke van hulleself maak oor wat hulle voorspel. As die oorlog begin, sal die soldate bewe van angs. Selfs die soldate wat met perde en strydwaens ry, sal soos papbroeke reageer. Dieselfde sal ook met hulle huursoldate gebeur. In die oorlog sal al hulle kosbare goed ook gesteel word. Dit sal selfs ook hulle water raak. Die water sal opdroog. Die rede hoekom al hierdie dinge gebeur, is die afgode. Die hele land is vol afgode en die mense is dol oor hulle.” Die Here sê: “Wilde diere sal Babel hulle blyplek maak. Daar sal nooit weer mense wees wat daar bly nie, maar hiënas en volstruise sal daar bly. Ek sal Babel verwoes net soos Ek destyds met Sodom en Gomorra gemaak het. Daar sal nie meer mense wees wat daar bly nie. Selfs nie eens net vir ’n rukkie nie.” Die Here sê: “Wees gewaarsku, ’n volk uit die noorde is op pad na julle toe, Babel. Dit is ’n groot, sterk nasie. Baie konings uit die verste dele van die aarde is besig om reg te maak om teen julle op te trek. Hulle het al die wapens wat nodig is om te veg. Hulle is baie wreed en sal niemand spaar nie. Die troepe ry op perde en dit klink soos die see wat dreun as hulle aankom. Hulle is goed georganiseerd en reg om julle aan te val, mense van Babel. Die nuus het by die koning van Babel uitgekom dat ’n mag besig was om teen hulle op te trek. Dit het hom lam van vrees gemaak. So erg was dit dat hy verskriklike angs en pyne begin kry het.” Die Here sê ook: “Ek sal soos ’n leeu maak wat uit die digte bosse by die Jordaan spring en die skape aanval wat besig is om te wei. Ek sal die mense van Babel uit hulle land jaag. Daarna sal Ek ’n leier wat Ek verkies, daar aanstel. Sê ’n bietjie vir My, wie kan met My vergelyk word? Wie kan My uitdaag? Watter koning kan dit durf waag om hom nie te steur aan wat Ek wil hê of verwag nie?” Luister ’n bietjie na die plan wat die Here met Babel en die land van die Babiloniërs het. Hy sê: “Ek sal toelaat dat hulle kinders weggevat word uit hulle land uit. Hulle sal geskok staan as hulle dit sien gebeur. Wanneer die vyand Babel inval, sal die aarde daarvan bewe en dreun. Die mense van Babel sal hard skree omdat hulle nie meer hoop vir die toekoms sien nie. Hulle sal skree omdat hulle nie meer hoop het nie. Al die volke van die wêreld sal hulle geskree hoor.” Die Here sê: “Ek sal ’n verwoester aanhits om Babel en die Babiloniërs aan te val. Ek sal vreemde mense stuur om Babel te verwoes. Hulle sal die mense van Babel verstrooi soos ’n wind wat kaf wegwaai. Hierdie vyand sal Babel van alle kante af aanval. Hulle sal die land ook rot en kaal steel. Moenie die soldate van Babel kans gee om hulle gevegsklere aan te trek nie. Moet hulle ook nie kans gee om hulleself te verdedig nie. Niemand moet gespaar word nie, veral nie die jongmense nie. Nee, die hele leër moet uitgeroei word. Die Babiloniese soldate sal oral dood of gewond in die strate van Babel lê. Ek is die Here wat sterker is as alles en almal. Ek het Israel en Juda nie in die steek gelaat nie. Ek is steeds hulle God al het hulle oral in die land verkeerde dinge teen My, die God van Israel, gedoen. Daar is niemand soos Ek nie, Ek is volmaak. “Vlug uit Babel uit! Red julleself! Sorg dat julle nie julle lewe verloor as Babel gestraf word nie. Dit is nou die tyd dat Ek besluit het om wraak te neem. Ek gaan die stad nou terugbetaal vir alles wat hulle teen My gedoen het. Die Here gaan Babel gebruik om die nasies te straf. Babel is soos ’n goue beker in die Here se hande. Al die nasies van die wêreld sal van die wyn in die beker drink en dronk word. Hulle sal mal word van die wyn wat hulle gedrink het. Maar iets snaaks het gebeur. Skielik het Babel nou ook geval. Dis verwoes. Huil oor die stad! Gee vir haar medisyne vir al die pyn wat sy het. Wie weet, miskien kan die stad weer gesond word. Ons sou die stad gehelp het as ons kon, maar niks kan Babel nou meer red nie. Kom weg uit die stad! Gee pad uit Babel! Laat elke mens na sy eie land toe teruggaan. Wat met Babel gaan gebeur, is nou in die Here se hande. Hy sal besluit wat om te doen. Die Here het bewys dat ons nie skuldig is nie. Kom ons gaan Jerusalem toe. Daar kan ons alles vertel wat die Here ons God gedoen het.” Die Here het die koning van die Mediërs laat lus kry om teen die Babiloniërs op te trek en hulle te vernietig. Hy wil wraak neem omdat hulle die tempel beskadig het. Daarom por die Here die Mediërs aan: “Kry julle wapens reg om te kan veg! Gee die teken met die vlag om te wys die oorlog teen die Babiloniërs het begin. Val die mure van Babel aan! Sorg dat daar oral wagte op hulle plekke is en dat hulle op en wakker is. Stel ook vir hulle hinderlae om in vas te loop.” Die Here weet wat Hy vir die Babiloniërs in gedagte het. Hy sal sorg dat wat Hy beplan het, so sal gebeur. Babel is gelukkig om baie water te hê. Dit is ook ’n stad met baie rykdom. Maar nou is die waarheid dat die einde van die stad om die draai is. Hulle lewensdraadjie word geknip. Die Here wat sterker as alles en almal is, sweer by Homself: “Julle kan vir seker weet, julle vyande sal julle stad oorspoel net soos ’n swerm sprinkane met ’n koringland maak. Hulle sal luidkeels skree om te wys dat hulle Babel verslaan en ingeneem het.” Die Here het die aarde deur sy krag gemaak. Deur sy kennis het Hy die wêreld gemaak en deur sy insig het die uitgestrekte hemel vorm gekry. As Hy praat, is daar donderweer in die hemel. Hy laat die wolke oor die aarde opkom. Verder laat Hy ook die weerlig slaan as dit reën. Hy laat die wind uit sy stoorkamers uitkom. As mense met Hom vergelyk word, lyk hulle maar baie dom. Dit lyk of hulle net mooi niks weet nie. Die goudsmede maak afgodsbeelde, maar hulle kom in die skande. Hierdie beelde is ’n kullery, want hulle haal nie asem nie. Afgode is eintlik nutteloos, niks anders as ’n bedrogspul nie. As die tyd kom om straf uit te deel, sal niks van hulle oorbly nie. Hulle sal vernietig word. Maar die God van Israel is nie ’n afgod soos hulle nie. Hy het alles wat bestaan, gemaak. Deel hiervan is sy eie volk. Israel is sy besitting wat Hy baie spesiaal vir Hom uitgesoek het. Hy is die Here wat sterker is as alles en almal! Die Here sê: “Babel, jy is my hamer waarmee Ek oorlog maak. Ek sal jou gebruik om volke mee stukkend te slaan. Ek sal met jou hulp koninkryke verwoes. Ek sal jou gebruik om perde en ruiters uitmekaar te slaan en ook oorlogswaens met hulle bemanning. Met jou hulp sal Ek mans, vroue, oumense, kinders en jongmense uitwis. Verder sal Ek jou gebruik om herders en hulle vee uit te roei. Ek sal ook met jou hulp boere en hulle osse tot niet maak. Ek sal julle gebruik om offisiere en mense wat regeer te vernietig.” Die Here sê ook: “Ek sal Babel en die Babiloniërs terugkry vir al die kwaad wat hulle aan my volk in Jerusalem gedoen het. Julle sal dit voor julle oë sien gebeur.” Vir Babel sê die Here: “Dit kan jy maar weet, Babel, Ek is jou vyand. Jy is soos ’n berg wat die hele wêreld verwoes. Groot en sterk. Maar Ek sal jou teen die hange van die berg laat afrol. Al wat van jou sal oorbly, sal die as wees nadat jy verbrand is. Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal eers uit jou rommel ’n klip vir ’n hoeksteen of ’n fondasie gebruik nie.” Gee ’n teken aan die nasies en blaas op ’n trompet sodat almal kan weet om oorlog teen Babel te kom maak. Roep die volke en lande met konings soos Ararat, Minni en Askenas op vir die oorlog teen Babel. Stel dan ’n bevelvoerder aan om die soldate in die oorlog te lei. Gebruik ook so baie perde dat hulle soos ’n swerm sprinkane sal lyk. Laat die leërs van die konings van Medië en ook hulle leiers en amptenare gereedmaak vir die aanval. Sluit ook by hierdie mag al die leërs in van die volke waaroor hulle beheer het. Die Here sê: “Die land skud en bewe van pyn en swaarkry, want Ek, die Here, is besig om te doen wat Ek teen Babel beplan het. Ek sal Babel ’n verlate plek maak waar niemand meer sal bly nie. Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek. Van oraloor kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel dat alles verlore is. Daar is nie meer hoop nie, want die stad is van alle kante af ingeval. Daar is ook nie meer wegkomkans nie, want al die ontsnaproetes oor die riviere is afgesny. Verder is die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is lam van angs.” Die Here is die God van Israel. Hy sê: “Babel is soos die plek waar die koring bewerk word. Die gebruik is om die koring met die voete te trap. Dit is wat met Babel gaan gebeur. Babel gaan soos koring geoes en vertrap word.” Van Babel word gesê: “Nebukadnesar, die koning van Babel, het ons geëet en verpletter. Hy het al ons krag getap en ons leeg laat voel. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag met ons skatte volgemaak. Hy het ons uit ons eie land gegooi.” Die mense van Jerusalem sê: “Mag Babel terugbetaal word vir al die geweld wat ons moes deurgaan. Mag die skuld vir ons dood op die Babiloniërs afkom! Ons hoop hulle gaan swaar daarvoor betaal.” Die Here sê vir die mense van Juda: “Ek belowe dat Ek julle saak sal opneem. Ek sal ook sorg dat Babel betaal vir wat hulle aan julle gedoen het. Die mense van Babel is afhanklik van die Eufraatrivier en fonteine vir water om van te leef. Ek sal dit laat opdroog. Babel sal ’n hoop bourommel word. Die jakkalse sal dit hulle lêplek maak. Mense wat die verskriklike toestand van die plek sien, sal van skok na hulle asem snak. Niemand sal meer daar bly nie. Die Babiloniërs gaan woes te kere en brul soos leeus. Hulle grom soos leeuwelpies. Terwyl hulle nog so warm is van die wyn, sal Ek vir hulle ’n ander fees hou. Ek sal hulle laat drink totdat hulle baie vrolik is en aan die slaap raak. Hulle sal aanhou slaap en nooit weer wakker word nie. Ek sal hulle bring om soos lammers, ramme en bokke geslag te word.” Die Here sê: “Hoe verskriklik is Babel se val nie! Babel was vroeër op almal se lippe. Die stad wat deur almal in die wêreld geloof is as so wonderlik is deur vyande ingeneem. Nou skok dit ander volke as hulle die toestand sien waarin Babel is. Dit is of die see opgestoot en oor Babel gespoel het. Die stad lê toe onder die golwe. Ook die stede rondom Babel is in ’n vreeslike toestand. Die land is droog en lyk soos ’n woestyn. Niemand bly meer in die stede of gaan selfs daar naby verby nie. Ek sal Bel, die god van Babel, straf. Ek sal alles terugvat wat hy van ander mense opgeslurp het. Die nasies sal nie meer kom om hom te dien nie. Babel se mure het geval, die stad is nou in die hande van die vyand.” Die Here sê vir die mense van Juda: “Maak dat julle wegkom uit Babel! Vlug vir julle lewe! Die Here is baie kwaad en gaan die stad tref. Moenie bang wees en angstig word as julle die eerste nuus in die land hoor van moeilikheid wat kom nie. Elke jaar sal daar sulke stories loop van geweld en van leiers wat teen mekaar baklei. Die tyd kom dat Ek Babel se afgode gaan straf. Die hele land en sy mense sal verneder word. Dit sal so erg wees dat die lyke sommer oral tussen hulle sal rondlê. Die leërs van die gewelddadige vyand sal uit die noorde teen Babel optrek. Wanneer dit gebeur, sal die hemel en die aarde en almal wat daarin is, sing van blydskap oor wat met Babel gebeur. Die mense van Babel het baie van Israel se mense doodgemaak. Hulle het ook baie ander mense oor die wêreld doodgemaak. Nou is dit hulle beurt om net so doodgemaak te word. “Julle mense van Juda wat die oorlog oorleef het, begin beweeg! Moenie nou staan en talm nie! Julle is miskien nou nog in ’n ver land, maar dink aan My, die Here. Maar droom ook ’n slag ’n bietjie oor Jerusalem waar julle huise is.” Julle sê: “Ons is verneder. Hulle het gekke van ons gemaak. Ons is skaam omdat vreemde mense in die tempel van die Here ingegaan het. Die ergste is dat hulle in ’n deel van die tempel ingegaan het waar net die hoëpriester mag ingaan.” Die Here het geantwoord: “Die tyd kom dat Ek die beelde wat van die afgode van Babel gemaak is, sal verwoes. Deur die hele land sal die gekreun van gewonde mense ook gehoor word. Dit is so dat Babel so hoog gebou is dat dit amper aan die hemel raak. Die stad se torings is ook sterker gemaak om aanvalle te kan weerstaan. Al is dit so, Ek sal vyande stuur om Babel aan te val. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!” Hoor hoe skree hulle in Babel. ’n Mens hoor die groot lawaai soos die land vernietig word. Die Here is besig om Babel te verwoes. Hy sal die rumoer in die stad laat stil word. Die vyand sal met ’n gedreun teen die stad aanstorm soos die golwe van ’n massa water. Hulle skree oorlogskrete terwyl hulle die stad bestorm. ’n Vyand trek teen Babel op om die stad te verwoes. Hulle sal die soldate gevange neem en hulle wapens stukkend slaan. Die Here sorg dat mense die straf kry wat hulle verdien. Dit is presies wat Hy besig is om met Babel te doen. Hulle kry die straf wat hulle toekom. Die Here is Koning en sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die leiers dronk maak. Dit sluit in die senior amptenare, raadgewers, offisiere en soldate. Hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie.” Die Here sê ook: “Babel se mure is baie dik, maar sal met die grond gelykgemaak word. Die hekke van die stadsingange is baie hoog, maar sal met vuur verbrand word. Hulle het baie mense van ander lande gedwing om vir hulle te werk, maar al hulle werk was verniet. Dit sal met vuur verbrand word.” Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het ’n boodskap saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel gery en was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar dat Sedekia koning van Juda was. Jeremia het al die rampe en ellendes wat Babel sou tref, in ’n boek opgeskryf. Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boek geskryf is, hardop lees. Jy moet sê: ‘Here, U het gesê dat U hierdie stad so erg gaan verwoes dat geen mens of dier meer hier sal bly nie. Die stad sal vir altyd so leeg en verlate bly.’ As jy die boek klaar gelees het, moet jy dit aan ’n klip vasmaak en in die middel van die Eufraatrivier gooi. Sê dan: ‘Dieselfde sal met Babel gebeur. Babel sal sink en nooit weer opkom nie. Dit sal gebeur omdat die Here rampe en ellendes oor hulle sal bring. Al hulle moeite sal dan pure verniet wees.” Hier eindig die boodskap van Jeremia. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Gamutal. Sy was die dogter van Jeremia wat van Libna af gekom het. Sedekia het net soos Jojakim dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was. Die Here was baie kwaad daaroor. Hy het toe die mense van Jerusalem en Juda van Hom af weggestuur na ’n ander land toe. Sedekia het toe in opstand gekom teen koning Nebukadnesar van Babel. Op die vyftiende Januarie, in die negende jaar dat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Die soldate het die stad omsingel en hulle oral rondom die stad ingegrawe. Hulle het Jerusalem so afgesny gehou van die buitewêreld tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was. Teen die agtiende Julie van dieselfde jaar was daar ’n krisis in die stad. Daar was niks meer kos vir die mense in Jerusalem en in die land nie. Toe is daar in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Die Babiloniërs was nou wel oral rondom die stad, maar in die nag het die soldate uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek wat tussen die twee mure was, agter die tuin van die koning, uitgegaan. Toe het hulle oor die veld in die rigting van die Jordaanvallei gevlug. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia op die vlakte naby Jerigo ingehaal. Daar het sy leër hom gelos en in alle rigtings gespat. Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar wat in Ribla was, gebring. Ribla was in die Hamatgebied. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor en besluit wat van hom sou word. Daar by Ribla het die koning van Babel Sedekia se twee seuns voor hom doodgemaak. Hulle het ook van die ander leiers van Juda daar doodgemaak. Hulle het toe ook Sedekia se oë uitgesteek. Daarna het hulle hom in kettings geboei en hom weggevat Babel toe. In Babel het hulle hom in die tronk gesit. Daar het hy gebly tot sy dood. Op sewentien Augustus 586 v.C. het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag van koning Nebukadnesar van Babel. Dit was die negentiende jaar dat Nebukadnesar koning was. Hy het die tempel, die koning se paleis en al die huise in Jerusalem afgebrand. Hy het al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand. Die Babiloniese leër wat saam met Nebusaradan was, het self die mure van Jerusalem afgebreek. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag van die koning van Babel, het toe van die armste van die mense na Babel toe weggevat. Hy het ook die mense wat nog in die stad oor was en dié wat na koning Nebukadnesar oorgeloop het, na Babel toe geneem. Laastens het hy ook die mense wat die een of ander vaardigheid of vakmanskap gehad het, gevang en na Babel toe gevat. Maar Nebukadnesar het van die armste mense toegelaat om in die land agter te bly. Hulle moes die wingerde versorg en die landerye ploeg. Die Babiloniërs het ook die koper gevat wat in die tempel was. Hulle het die koperpilare afgebreek en ook die voetstukke waarop die koperwasbakke gestaan het. Hulle het dieselfde gedoen met die groot koperbad. Al hierdie koper het hulle Babel toe weggedra. Hulle het ook van die ander voorwerpe saamgevat wat in die tempel gebruik is. Dit het ingesluit potte, grawe, messe en die bakke waarop hulle wierook gebrand het. Verder ook die panne waarin hulle die kole vir die offers geskep het. Nebusaradan het ook die kleiner bakkies, potte en bekers gevat wat hulle vir die drinkoffers gebruik het. Al die voorwerpe was van silwer of goud gemaak. Van die kopergoed was te swaar om te beweeg. Dit was van die goed wat koning Salomo destyds vir die tempel laat maak het. Dit was goed soos die twee koperpilare, die koperbad, die twaalf bulle onder hierdie bad en die voetstukke van die wasbakke. Elkeen van hierdie pilare was net so oor die agt meter hoog en net meer as vyf meter in omtrek. Die pilare was hol binnekant en die wande was so vier vingers dik. Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was ongeveer twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het presies net so gelyk. Aan die kante was daar 96 granate en as die in die vlegwerk bo bygetel word, in totaal 100 granate. Nebusaradan het vir Seraja, die hoëpriester, asook Sefanja, wat naas hom die belangrikste priester was, gevang en saam met hom gevat. Hy het ook drie van die wagte gevang wat die ingange van die tempel opgepas het. Party van die mense het in Jerusalem probeer wegkruip. Van hierdie mense het Nebusaradan ’n offisier van die Judese leër en sewe van die koning se raadgewers gevang. Dan het hy ook nog die sekretaris van die offisier wat daarvoor verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf gevange geneem. Laastens het hy 60 mense uit die platteland wat in Jerusalem was, gevang en met hom saamgevat. Nebusaradan het al hierdie mense na koning Nebukadnesar in Ribla gebring. Die koning van Babel het hulle almal daar in Ribla in die Hamatgebied laat doodmaak. So is die mense van Juda gevange geneem. Hulle is uit hulle land weggevat en na ’n vreemde land gebring. In totaal was die aantal mense wat as gevangenes na Babel weggevat is, die volgende: 3 023 Jode in die sewende jaar dat Nebukadnesar koning was. In Nebukadnesar se agtiende jaar as koning het hy nog 832 mense uit Jerusalem weggevat. In sy 23ste jaar as koning het hy Nebusaradan, die hoof van sy lyfwag, na Juda gestuur. Hy het nog 745 mense weggevat. In totaal is 4 600 mense gevange geneem. In die 37ste jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in Babel was, het Ewil-Merodak die nuwe koning in Babel geword. Hy was Jojagin goedgesind en het hom uit die tronk laat kom. Dit het gebeur op die 31ste Maart 561 v.C. Ewil-Merodak het baie vriendelik met koning Jojagin gepraat. Hy het Jojagin beter behandel as al die ander konings wat in Babel gevange gehou is. Jojagin hoef ook nie meer sy tronkklere te gedra het nie. Hy is ook toegelaat om vir die res van sy lewe saam met die koning te eet. Die koning van Babel het ook vir Jojagin ’n gereelde toelaag gegee. Dit was om hom te help om te betaal vir wat hy elke dag nodig gehad het. Hy sou dit kry so lank as wat hy leef. Ai tog! Hoe verlate is die stad waar mense mekaar eens vertrap het. Sy wat so belangrik was onder die nasies het nou soos ’n eensame weduwee geword. Sy wat die leier was, word nou verplig om vir hulle te werk. Sy sit dwarsdeur die nag en huil met trane wat oor haar wange loop. Niemand van dié wat vroeër by haar gekuier het, wil haar nou kom troos nie. Almal wat eers haar vriende was, het teen haar gedraai. Hulle het haar vyande geword. Juda is weggevat om te gaan swaarkry. Hulle woon tussen vreemde volke waar hulle nie tuis is nie. Die vyand het hulle agtervolg, hulle ingehaal en hulle in ’n hoek vasgekeer. Omdat niemand meer na die feeste by die tempel kom nie, lê die paaie na Sion eensaam en verlate. Die priesters staan by die hek en sug omdat daar niemand meer oor is nie. Die jong vroue is hartseer omdat dit so swaar is om in Jerusalem te bly. Jerusalem se vyande het gewen. Hulle leef nou baie rustig. Die Here laat die stad swaarkry oor die baie dinge wat sy verkeerd gedoen het. Haar vyande het haar kinders weggevat om in ’n ander land te gaan woon. Sy was baie mooi, maar nou het die skoonheid van die dogter van Sion verdwyn. Haar leiers het soos takbokke geword wat nie ’n plek kry waar hulle kan wei nie. Hulle hardloop onrustig voor die jagters uit. In hierdie tyd dat sy so swaarkry, dink Jerusalem terug aan hoe pragtig sy vroeër gelyk het. Maar daar was niemand om haar te help toe sy in die vyand se hand beland het nie. Die vyand het lekkergekry toe sy aan haar einde kom en vir haar gelag. Almal staan die kop en skud oor Jerusalem wat soveel skande gemaak het. Sy is onaanvaarbaar vir God. Almal wat vroeër so baie van haar gedink het, het gesien hoe sy lyk as sy kaal is. Nou verag hulle haar. Sy het net ’n kreun gegee en in skaamte haar rug vir hulle gedraai. Die skande wat sy oor haarself gebring het, klou aan haar lyf. Sy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Sy het so diep geval dat niemand haar meer kan help nie. Sy roep: “Here, kyk hoe sleg gaan dit met my noudat die vyand my oorwin het!” Die vyand het alles wat vir haar dierbaar was, by haar weggevat en vir hulleself gehou. Sy het selfs gesien hoe ander volke in die Here se huis ingaan. Die Here het vroeër sulke mense belet om tussen die mense van sy volk te kom. Haar mense loop en kla terwyl hulle na kos soek om te eet. Hulle het alles wat vir hulle belangrik was, geruil vir kos. Hulle het alles gegee net om aan die lewe te bly. “Kyk tog mooi, Here. Almal verag my!” Julle wat by die stad verbyloop, moet oplet. Kyk mooi. Is daar nog enigiemand anders wat soveel pyn het as ek? Die Here het hierdie seer oor my gebring die dag toe Hy so kwaad was vir my en my gestraf het. Hy het ’n vuur van bo af gestuur wat my verteer het. Hy het ’n vangnet vir my gespan wat my laat terugsteier het. Hy het my eensaam en siek agtergelaat. Die Here het met sy hand die dinge wat ek verkeerd gedoen het soos ’n tou inmekaar- gevleg. Hy het dit soos ’n juk op my nek gesit. Ek het nie genoeg krag om dit te dra nie. Die Here het my oorgegee aan mense teen wie ek nie sterk genoeg is om te veg nie. Die Here het al die sterk mans wat ek gehad het, met minagting weggewys. Hy het ’n weermag bymekaargemaak om my jongmanne te verslaan. Die Here het Juda stukkend getrap. Dit was soos druiwe wat jy met jou voete in die parskuip stukkend trap. Trane loop uit my oë. Ek huil oor alles wat gebeur het. Daar is niemand by my wat my kan troos en my beter kan laat voel nie. Die vyand was te sterk vir my. My kinders is weg. Die mense wat in my woon, is platgeslaan. Hulle het niks om na uit te sien nie. Sion steek verniet haar hande uit dat iemand haar kan troos. Die Here het vir almal wat rondom Jakob woon, gesê om van nou af sy vyand te wees. Jerusalem het soos ’n melaatse geword van wie jy ver moet wegbly. Die Here is reg. Ek was opstandig teen sy woord. Al julle volke moet luister wat ek sê. Gee aandag aan my hartseer. Al my dogters en my seuns is weggevat na ’n ander land toe. Dié wat beloof het om my te help as daar moeilikheid kom, dié wat vir my lief was, het my in die steek gelaat toe ek hulle gevra het om my te help. Die mans wat vir die Here sy offers gebring het en die oumense wat in die stad gebly het, is nou almal dood. Hulle het kos gesoek om aan die lewe te bly. Here, kyk hoe bang is ek. My hart krimp inmekaar. Ek was so vreeslik opstandig. Die swaard maai alles op die strate af. Binne-in die huise is dit soos die dood. Hoor tog hoe kreun ek omdat niemand by my staan nie. My vyande hoor wat U met my laat gebeur het. Hulle is baie bly daaroor. Laat tog die dag kom wat U beloof het. Laat dit met hulle gaan soos dit nou met my gaan. Kyk na al die kwaad wat hulle gedoen het. Straf hulle daarvoor soos U my gestraf het vir alles wat ek verkeerd gedoen het. Ek sug aanmekaar. My hart is swaar binne-in my. Ai tog! Die Here was so woedend. Hy het soos ’n donker wolk oor Sion gekom. Van bo uit die hemel uit het Hy die mooi stad van Israel in die grond in geboor. Toe Hy so kwaad geword het, het Hy weggegaan van die tempel af waar Hy altyd gewoon het. Hy het sonder om jammer te wees die plek verwoes waar Jakob gebly het. Hy was woedend toe Hy die plek afgebreek het waar Juda gewoon het. Hy het die leiers op die grond gegooi. Hy het ’n einde gemaak aan hulle regering. Hy was rasend van woede toe Hy Israel se krag gebreek het. Toe die vyand kom, het Hy nie eens ’n hand uitgesteek om sy mense te help nie. Hy was soos vuur wat van alle kante af teen Jakob gebrand het. Hy het reg teenoor ons gaan staan. Hy het die pyl in sy boog gespan en na ons gemik asof ons sy vyand was. Hy het soos ’n vyand alles verwoes wat vir ons mooi was. Sy woede het losgebars teen dié wat in Sion bly. Dit was soos ’n vuur wat vlam vat. Die Here het Israel verwoes asof hulle sy vyand was. Hy het die huise afgebreek waarin hulle gewoon het. Hy het die plekke waar hulle teen gevare geskuil het, heeltemal verwoes. Hy het ’n hartseer in Juda gebring wat nooit sal weggaan nie. Hy het sy tempel waar almal bymekaargekom het, met geweld verwoes. Hy het dit afgebreek asof dit net ’n tydelike afdak was. Die Here het dit laat ophou dat ons vir Hom bymekaarkom en sy feeste en rusdae hou. Hy was so kwaad dat Hy sommer die koning en sy werkers by die tempel in die pad gesteek het. Die Here wou niks verder weet van die plek waarop hulle vir Hom geoffer het nie. Hy het nie verder belanggestel in die tempel waar hulle tot Hom kom bid het nie. Hy het die vyand toegelaat om sy huis se mure te kom afbreek. Hulle het in die huis van die Here ingekom en daar ’n lawaai gemaak asof dit ’n plek was waar ’n mens te kere kan gaan soos jy wil. Die Here het besluit dat Sion se mure afgebreek moet word. Hy het merke op die mure gemaak om vir die vyand te wys waarheen hulle moet kom om dit af te breek. Die sterk mure aan die buitekant het saam met die mure aan die binnekant inmekaargestort. Die hekke van die stad lê saam met hulle skarniere onder die rommel begrawe. Haar koning en haar leiers is weggevat na ander volke toe. Dié wat vir die mense moet kom vertel wat die Here sê, hoor niks van die Here nie. Niemand weet meer wat die Here wil hê nie. Die leiers van Sion sit plat op die grond. Hulle sê nie ’n woord nie. Hulle het begrafnisklere aan. Elkeen van hulle gooi grond op sy kop, so hartseer is hulle. Die jongmeisies van Jerusalem sit daar kop onderstebo. Ek is heeltemal verslae. My oë is al leeg gehuil. Ek is naar op my maag as ek sien hoe my volk in duie stort. Kinders en babatjies word flou in die stad se strate. Die kinders soek by die ma’s iets om te eet of te drink. Hulle sak op straat inmekaar soos iemand wat geskiet is. Hulle gaan dood in hulle ma se arms. Wat kan ek as ’n voorbeeld gebruik om jou mee te vergelyk, Jerusalem? Waarmee kan ek jou vergelyk dat dit jou miskien kan troos, Sion? Wat jou oorgekom het, is so vreeslik dat dit nie lyk of iemand jou ooit weer sal kan regkry nie. Hulle wat vir julle moes sê wat God hulle laat sien het, het vir julle gelieg en julle bedrieg. Hulle moes vir julle gesê het wat julle verkeerd doen om te keer dat julle uit julle land uit weggevat word. Wat hulle vir julle vertel het wat hulle gesien het, was ’n klomp leuens. Almal wat by die stad verbyloop, slaan die hande saam. Hulle skud die kop en fluit van verbasing oor Jerusalem. Hulle wonder: “Is dit die stad wat hulle gesê het so mooi is, wat vreugde vir die wêreld bring?” Jou vyande het baie oor jou te sê. Hulle fluit deur hulle tande en dryf die spot met jou. Hulle sê: “Uiteindelik het die dag gekom waarvoor ons gewag het om die stad te vernietig!” Die Here het met jou laat gebeur wat Hy oor jou besluit het. Hy het jou genadeloos verwoes, soos Hy lank terug al beloof het. Hy het jou vyande sterk gemaak en hulle laat lekkerkry toe hulle jou verslaan het. Laat die mure van Sion by die Here gaan pleit. Laat daar dag en nag trane vloei soos ’n rivier. Moenie vir ’n oomblik ophou nie. Staan elke keer in die nag op wanneer die wagte omruil en roep na die Here. Stort julle hart soos water voor Hom uit. Steek julle hande na Hom toe uit. Pleit by Hom vir julle kinders wat op die straat van honger inmekaarsak. Kyk ’n bietjie, Here, wie kry die swaarste onder dit wat U met ons laat gebeur het. Moet vroue dan die kinders eet wat hulle self in die wêreld gebring het? Moet die priesters dan daar waar hulle vir die Here by sy tempel werk, doodgemaak word? Moet die profete wat God se boodskap oordra, dan daar doodgaan? Buite op die grond lê daar jonges en oues wat dood is. Die jonges is met die swaard doodgemaak. Die dag toe U kwaad geword het, het U hulle doodgemaak. U het hulle sonder genade soos diere geslag. U het van oral af my vyande geroep asof dit ’n fees was waarvoor hulle moes kom. Die dag toe die Here sy woede losgelaat het, het niemand dit reggekry om te ontsnap nie. Die vyand het my kinders doodgemaak wat ek met soveel liefde grootgemaak het. Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is. Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe. Hy het nie opgehou om my te slaan nie. Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak. Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk. Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is. Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie. Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard. Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag. Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet. Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het. My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my. Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my. Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek. Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees. Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag. Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag. Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly. Hy moet maar sy trots sluk wanneer hulle hom beledig. Hy moet maar die ander wang ook na hulle toe draai. Die Here sluit ’n mens mos nie vir altyd uit nie. Hy maak ’n mens wel seer. Omdat sy liefde so groot is, kry Hy ons ook weer jammer. Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie. Die Here sien dit raak as gevangenes mishandel word. Hy sien wanneer mense verontreg word, teen die wil van die Allerhoogste. Hy kyk hoe mense in die hof onbillik behandel word. Kan enigiemand iets laat gebeur as die Here nie daarmee instem nie? Kom die slegte en die goeie dinge nie maar alles van God daar bo nie? Waaroor sal ’n mens kla wanneer hy lewe al het hy verkeerd gedoen? Kom ons gaan kyk hoe ons pad geloop het en dink ’n bietjie na oor wat ons gedoen het. Dan kan ons omdraai na die Here toe. Laat ons ons hart en ons hande na die Here in die hemel uitsteek. Laat ons met alles wat ons het tot Hom bid: “Here, U kan ons nie vergewe nie, want ons was hardkoppig en opstandig teenoor U. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons sonder genade dood te maak. U het agter die wolke ingegaan sodat nie een van ons gebede by U kon uitkom nie. U het ons die ashoop van die wêreld gemaak waarop al die gemors gegooi word. Al ons vyande beledig ons en sê van ons net wat hulle wil. Ons is bang en vasgekeer. Ons is verwoes en eenkant gegooi.” Ek huil lang trane omdat my volk in duie gestort het. Ek sal aanhou huil, ek sal nie ophou nie totdat die Here afkyk uit die hemel en my raaksien. Ek is baie hartseer as ek sien wat met die dogters in Jerusalem gebeur het. Mense wat sonder enige rede my vyande geword het, jaag my asof hulle ’n voël probeer vang. Hulle het my in ’n waterput gegooi om my te laat verdrink. Hulle het dit met klippe toegepak. Die water het oor my kop gegaan en ek het gedink: Nou is dit verby met my. Daar onder in die put het ek na U begin roep, Here. En U het gehoor toe ek roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” Die dag toe ek na U geroep het, het U vir my kom sê: “Hou nou op om bang te wees.” U het soos ’n prokureur in die hof vir my saak geveg en my lewe gered. Gee tog uitspraak in my guns, want U sien hoe hulle die wet verdraai om onreg aan my te doen. U sien tog al die plannetjies wat hulle maak om my terug te kry. U hoor watter planne hulle alles maak om my te beledig. Hulle wat teen my gekant is, sit heeldag en sleg praat oor my. Waar hulle ook al kom, sing hulle liedjies waarin hulle met my die spot dryf. Betaal hulle terug, Here, vir elke ding wat hulle aan my gedoen het. Laat hulle al slegter word en straf hulle dan daarvoor. Sit hulle agterna met u woede en roei hulle heeltemal uit op die aarde. Ai tog! Die goud wat so geblink het, het dof geword. Die klippe waarmee die tempel gebou was, lê gestrooi oor die strate. Die mense wat in Sion bly, was vroeër gereken asof hulle net soveel werd was as goud. Nou word daar gemaak asof hulle niks beter is as die kleipotte wat die pottebakker maak nie. ’n Jakkalswyfie laat haar kleintjies drink. Maar die vroue van my volk het so wreed geword soos die volstruise in die woestyn wat hulle kleintjies weggooi. Elke babatjie se mond is kurkdroog omdat hulle niks kry om te drink nie. Kindertjies soebat verniet vir iets om te eet. Niemand gee vir hulle iets nie. Die mense wat vroeër uitgesoek het watter kos hulle wou eet, loop nou op straat en soek na enigiets om te eet. Die mense wat vroeër die klere van ’n koning gedra het, krap nou op ashope rond vir iets om te eet. God het Sodom in een oomblik verwoes oor sy sonde. My volk se sonde is baie groter as Sodom se sonde. Jerusalem se leiers het mooi gelyk. Hulle klere was helderder as sneeu, witter as melk. Hulle was blakend gesond. Elkeen se gesig het nou pikswart geword. Niemand op straat kan hulle meer herken nie. Hulle is net vel en been. Hulle vel is so uitgedroog soos droë hout. Dit was makliker vir dié wat in die oorlog doodgemaak is as vir hulle wat van honger moet doodgaan. Hulle gaan agteruit en gaan stadig dood omdat daar niks is om te eet nie. Vroue wat hulle kinders liefgehad het, moes selfs hulle eie kinders gaarmaak en eet om te kon oorleef. Die Here het sy woede laat uitwoed. Hy het alles waaroor Hy kwaad was, laat uitkom. Hy het die vuur van sy woede teen Jerusalem laat losbrand. Hy het die stad tot op sy fondamente verwoes. Geen koning en geen mens op aarde het ooit gedink dat enige vyand Jerusalem kon inneem nie. Regverdige mense is in Jerusalem doodgemaak omdat die mense wat God se boodskap vir hulle moes bring, nie na God geluister het nie. Dié wat by sy tempel gewerk het, het nie gedoen wat die Here vir hulle gesê het nie. Hulle het soos blindes voetjie vir voetjie deur die strate geskuifel. Hulle klere was so vol bloed dat niemand eens aan hulle wou vat nie. Ander het vir hulle geskree: “Gee pad van ons af. Julle is vuil. Gee pad en moenie aan ons raak nie!” Toe hulle wegvlug en by ander volke aankom, het dié vir hulle gesê: “Julle kan nie meer hier by ons bly nie! Julle is nie welkom nie!” Die Here het hulle uitgewis. Hy gee niks meer vir hulle om nie. Hy het nie meer tyd vir dié wat by sy tempel werk nie. Hy het geen genade vir die leiers nie. Ons het verniet sit en kyk of daar nie iemand sou kom wat ons kon help nie. Ons het by die uitkykpunt tevergeefs gestaan en uitkyk of daar nie ’n nasie kom wat ons sal red nie. Hulle het ons so fyn dopgehou dat ons dit nie op straat kon waag nie. Ons dae was getel. Ons einde was naby. Ons einde het gekom. Dié wat ons agtervolg het, was vinniger op ons as arende wat van bo af op hulle prooi afduik. As ons in die berge ingevlug het, was hulle warm op ons spoor. As ons na die woestyn toe gevlug het, het hulle ons reeds voorgelê. Ons was vir ons lewe afhanklik van die koning wat die Here vir ons gegee het. Ons het gedink hy sal ons lei en tussen die nasies laat oorleef. Maar hulle het hom voorgelê en hom gevang. Julle van Edom wat in die land Us bly, moet maar lag en lekkerkry. Die dag van julle afrekening sal kom wanneer julle ook gestraf sal word en in die skande gaan kom. Jou sonde is nou afgehandel, Sion. Jy sal nie langer meer in ’n ander land hoef te bly nie. Maar jou oortredings, Edom, is volgende aan die beurt. Jy gaan gestraf word vir wat jy gedoen het. Jy gaan uit jou eie land weggevat word na ’n ander land omdat jy teen God oortree het. Here, hou ’n bietjie in gedagte wat met ons gebeur het. Kyk hoe is ons beledig. Die grond wat ons geërf het, het in vreemdelinge se hande beland. Uitlanders bly nou in ons huise. Ons het geword soos kinders wat nie meer ’n pa het nie. Die ma’s het soos vroue geword wat nie meer ’n man het nie. Ons moet betaal vir die drinkwater wat aan ons behoort. Ons moet vir ons eie brandhout geld uitgee. Dié wat ons agtervolg, lê op ons nek. Hulle gee ons nie ’n oomblik se rus nie. Ons is stokflou. Ons het by Egipte gaan aanklop om ons te help. Ons het selfs Assirië gesoebat om vir ons kos te gee sodat ons honger kan oorgaan. Dit is ons voorouers wat die sonde gedoen het waarvoor ons moet betaal noudat hulle reeds lankal dood is. Hulle wat ander mense se slawe was, is nou ons base. Daar is niemand wat ons van hulle kan bevry nie. Wanneer ons kos in die veld gaan bymekaarmaak, loop ons die risiko dat ons doodgemaak kan word. Ons is koorsig van die hongerte. In Sion en in al die dorpe van Juda het hulle ons vroue en ons dogters verkrag. Ons leiers word aan hulle hande opgehang. Daar is nie respek vir ons oumense nie. Ons jongmans moet koring maal soos slawe. Jong seuntjies steier onder vragte hout wat vir hulle te swaar is. Die leiers kan nie meer by die stad se poort sit om sake te bespreek nie. Die jongmense mag nie meer daar musiek maak nie. Daar is nie meer vreugde oor in die lewe nie. Ons vrolike dans het in begrafnisliedere verander. Ai tog, dit gaan sleg met ons. Ons het oortree en nou is alles weg waarop ons trots was. Ons knieë het lam geword en ons oë het dof geraak omdat Sion ’n verwoeste en verlate plek geword het waarin jakkalse rondsluip om te aas. Is U dan vir altyd kwaad? U hou nooit op om te regeer nie, Here. U sit op u koningstroon en U regeer van een geslag tot die ander. Hoekom lyk dit dan of U geheel en al van ons vergeet het? Hoekom is dit dan nou al so lank dat U ons aan ons eie lot oorgelaat het? Lei ons weer terug na U toe sodat ons weer vrede met U kan maak. Maak alles tussen ons weer soos dit vroeër was. Of het U ons nou vir altyd weggegooi? Gaan U regtig vir altyd vir ons kwaad bly? My naam is Esegiël. Ek is ’n boodskapper van God. My pa se naam is Busi. Ek is in 597 v.C. deur die Galdeërs as ’n gevangene uit my land weggevoer na ’n vreemde land saam met ’n klomp ander van my volk. Op die 31ste Julie 593 v.C., toe ek 30 jaar oud was en as priester in die tempel kon begin werk het, het iets met my gebeur. Dit was die vyfde jaar nadat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes na die vreemde land weggeneem is. Ons het by die Kebarrivier gebly, naby die Persiese Golf in die land van die Babiloniërs. Die Here het Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak: Hy het direk uit die hemel met my gepraat. Ek het Hom gesien. Sy hand was swaar op my. Hy het vir my ’n boodskap gegee om vir my eie mense te bring. Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid. Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid. Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek. In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het. Die wesens het soos ’n witwarm vuur gelyk, met helder vlamme wat tussen hulle beweeg. Die vlamme het opgevlam soos dié van ’n baie warm vuur, of soos weerligstrale wat aanhoudend blits. En die lewende wesens het soos weerligstrale heen en weer geflits. Terwyl ek na die wesens kyk, sien ek vier wiele op die grond onder die wesens. Onder elke wese was ’n wiel wat aan die grond geraak het. Die wiele het geskitter soos duur en kosbare diamante. Hulle was baie mooi. Al vier die wiele het presies dieselfde gelyk. En binne-in elke wiel was nog ’n wiel, dwars gedraai teenoor die ander een. Die wiel binne ’n ander wiel het gemaak dat die wesens daar bo in enige rigting kon beweeg sonder om te draai as hulle beweeg. Die wiele het my beïndruk omdat dit so groot was. Die buitenste raam waaroor die band van die wiel getrek was, was vol oë wat in alle rigtings gekyk het. Elke keer wanneer die wesens gelyktydig begin beweeg, het die wiele onder hulle ook beweeg. Selfs wanneer die wesens van die grond af in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. Die Gees van die vier lewende wesens was ook in die wiele. Waarheen die Gees ook al die wesens laat beweeg het, het die wiele saam beweeg. Die Gees was in beheer van dié vreemde ding waarna ek gekyk het. Elke keer wanneer die wesens beweeg het, het die wiele ook beweeg. En elke keer wanneer die lewende wesens gestop het, het die wiele ook dadelik tot stilstand gekom. Wanneer die lewende wesens in die lug opgestyg en weggevlieg het, het die wiele saam opgestyg en gevlieg. Dit was omdat die Gees van die lewende wesens in die wiele was. Bokant die koppe van die wesens was daar iets wat soos die horison gelyk het, en die lug van die horison het soos kristal geskitter. Dit het gelyk of daar ’n ysberg was, en die son het helder op die wit ys weerkaats. Hier onder het die vier wesens gestaan. Die vier wesens se boonste vlerke het aan mekaar geraak, en hulle onderste vlerke was toegevou. Daarmee het hulle hulle lywe bedek. Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak. Toe die wesens stil gaan staan, het ’n stem vanuit die skitterende ysberg bokant hulle koppe gekom. Bokant die wesens se koppe was daar iets wat gelyk het soos ’n reusesitplek waarop ’n koning sit. Dit het gelyk of hierdie sitplek van hemelsblou edelstene gemaak is. En hoog bo-op die troon het Iemand gesit wat vir my na ’n Mens gelyk het. Hy het ver bokant die troon uitgestaan, so groot was Hy. Die Man se bolyf het gegloei. Dit het gelyk of dit van lopende, witwarm metaal gemaak is, so helder het dit geblink. Dit het gelyk of daar vuur uit sy bolyf kon kom, so het dit geskitter. En sy onderlyf het net so geskitter, asof dit van ’n baie warm vuur gemaak is. Rondom die Man was die lig so helder dat dit gelyk het of die mooiste veelkleurige reënboog om Hom gedraai was. Ek het toe besef dat dit die Here self was wat in al sy mag aan my verskyn het. En toe ek die Man sien, het ek met my gesig in die stof neergeval. Ek kon nie langer bly staan nie, so het dié gesig my oorweldig. Toe hoor ek iemand wat met ’n helder, duidelike stem met my praat. Die stem wat met my gepraat het, het duidelik gesê: “Staan op, mens. Ek wil vir jou iets sê.” Toe ek die stem hoor, het dit gevoel of ek regop geruk word. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat oor my gekom het. Ek het krag gekry om regop voor die troon te gaan staan. Toe het ek goed na die Here se stem geluister. Hy het gesê: “Mens, Ek stuur jou na die nasie, na Israel toe. Dit is ’n nasie wat aanhoudend teen My in opstand kom. Hulle oupagrootjies en oupas het van die begin af al teen My in opstand gekom. En vandag is die volk Israel steeds in opstand teen My. Hulle is vreeslik moedswillig, die mense na wie toe Ek jou stuur. Hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. En hulle is hardkoppig. Hulle hoor nie as Ek met hulle praat nie. Ek gee jou die opdrag: jy moet presies vir hulle gaan sê wat Ek, die Here hulle God, vir jou sê om vir hulle te gaan vertel. Jy moet vir hulle gaan sê: ‘Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer!’ Jy moet met hulle praat, of hulle nou luister en of hulle nie luister nie. Want onthou, hulle is ’n klomp rebelle wat heeltyd teen My in opstand is. As hulle na jou geluister het, sal hulle ten minste weet dat daar iemand onder hulle was wat gepreek het oor wat die Here wil hê hulle moet doen. “Mens, jy mag nie bang wees vir die mense vir wie jy hierdie boodskap bring nie. Jy mag jou ook nie steur aan wat hulle dalk oor jou boodskap te sê het nie. Selfs al dreig hulle jou en voel dit of hulle beledigings jou soos ’n skerp doringheining of giftige skerpioene steek, moet jy regop tussen hierdie klomp mense gaan staan en hardop alles uitroep wat Ek vir jou sê. Moenie dat hulle jou die skrik op die lyf jaag nie. Onthou heeltyd hoe hulle van die begin af tot nou toe teen My in opstand was. Jou werk is om alles wat Ek vir jou sê presies so vir hulle te sê, of hulle hulle daaraan steur of nie. Onthou dat hulle ’n klomp rebelle is. Hulle sal vir seker nie na jou luister nie! “En jy moet mooi luister na wat Ek nou vir jou gaan sê. Pas op dat jy nie ook teen My in opstand begin kom soos hierdie volk nie. Pas op dat jy nie ook later ’n rebel word soos die mense vir wie jy my boodskap moet gaan verkondig nie. “Maak nou oop jou mond. Ek wil vir jou iets gee wat jy moet eet.” [9-10] Ek het toe ’n hand gesien wat na my uitgesteek word. Die hand het ’n boek vasgehou. Dié boek was op die voorblad en die agterblad, en aan al die kante volgeskryf met iets. Ek het stip na die boek gekyk en probeer lees wat daarop geskryf staan. Ek sien toe dit is liedere wat baie hartseer mense sing, mense wat treur oor die dood van iemand vir wie hulle baie lief was. Daar was ook liedere wat mense by die graf sing as hulle iemand begrawe wat baie naby aan hulle was. Toe het die stem verder met my gepraat: “Mens, eet die boek wat Ek vir jou gegee het. Die boek bevat die boodskap wat Ek wil hê jy na hierdie volk toe moet neem. Gaan sê vir die mense van Israel wat in die boek staan. Gaan sê vir hulle wat Ek sê.” Ek het toe die boek in my mond gesit en dit geëet. Die Here het my die boekrol gevoer. Die Here het toe verder vir my gesê: “Eet die hele boek op. Moenie ’n flentertjie daarvan laat oorbly nie.” Ek het die boek toe heeltemal opgeëet. Die boek was so soet soos heuning. Dit het lekker gesmaak. Toe sê die Here vir my: “Mens, Ek wil hê jy moet nou na die mense van Israel toe gaan en vir hulle presies vertel wat Ek vir jou sê om vir hulle te vertel. Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk in ’n veraf land wat ’n taal praat wat jy nie kan verstaan nie. Ek stuur jou na jou eie mense, na Israel toe. Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk wie se taal vir jou moeilik en onverstaanbaar sal wees nie. Het Ek jou maar na so ’n volk toe gestuur! Hulle sou dalk na jou geluister het. Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie. Hulle wil nie eens na My luister as Ek direk met hulle praat nie! Hoe sal hulle na jou wil luister? Dit is ’n klomp mense wie se kop net so hard is soos hulle hart! Maar kyk nou mooi. Ek maak jou hart en jou kop net so hard soos die mense van Israel s’n. Ek het jou so sterk soos ’n groot rots gemaak. Jy is nou so hard soos ’n diamant. Daarom moet jy nie bang wees vir die mense nie. Hulle sal niks aan jou kan doen nie. Moenie skrik as hulle vir jou kwaad word nie. Onthou, hulle is ’n klomp mense wat nog heeltyd teen My in opstand is.” Toe het die Here verder met my gepraat: “Laat elke woord wat Ek vir jou sê, eers diep in jou eie hart insink. Luister baie goed as Ek met jou praat, en bêre elke woord diep in jou hart. Gaan dan na jou mense toe wat saam met jou gevangenes in die vreemde land, in Babilonië, is. Gaan praat dan met jou mense. En gaan sê vir hulle alles presies soos Ek, die Here hulle God, vir jou gesê het om vir hulle te sê. Gaan sê dit vir hulle, of hulle nou luister of nie.” Toe het die Gees van die Here my opgetel, en toe die teenwoordigheid van die Here van daardie plek opstyg, het dit geklink soos wanneer ’n groot aardbewing die grond en die bosse vernietig. Die geluid wat ek gehoor het, was die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het toe hulle opgestyg en begin vlieg het. Die wiele wat in mekaar gedraai het, het gemaak dat die geluid so groot was soos ’n aardbewing wat die aarde tref. Die Gees van die Here het my toe opgetel en van daardie plek af weggevat waar ek die Here gesien het. Ek het baie benoud en bang gevoel. Maar die Here se hand was swaar op my. So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit. Na ’n week het die Here weer met my gepraat: “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het. As jy hom wel gewaarsku het, maar hy steur hom nie daaraan nie en hou aan met sy verkeerde optrede en weier om om te draai en agter My aan te loop, sal hy doodgaan omdat ek Hom tot die dood veroordeel. Maar dan het jy jou lewe gered omdat jy hom gewaarsku het en gedoen het wat Ek jou beveel het. En as goeie mense wat tot nou toe reg geleef en goed gedoen het, ophou om agter My aan te loop en verkeerde dinge begin doen, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie gewaarsku het en hulle gewys het op die gevolge van hulle dade nie, sal hulle as gevolg van hulle dade sterf. Die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal nie tel nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir hulle dood omdat jy hulle nie betyds gewaarsku het nie. Ek sal hulle bloed van jou hande eis. Maar as jy hulle betyds gewaarsku het en hulle draai om van hulle slegte dade en loop agter My aan, sal hulle leef. En jy sal so jou eie lewe red.” Toe het die Here se krag oor my gekom en Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe. Ek wil daar by die rivier met jou praat.” Ek het toe opgestaan en na die vallei toe gegaan. Ek het in die vallei weer die sitplek van die Here gesien, net soos ek dit by die Kebarrivier gesien het, met die Here wat bo-op die troon sit. Ek het met my gesig in die stof neergeval. Dit het gevoel of die lewe uit my gevloei het. Toe het die Gees oor my gekom en my op my voete voor die Here laat staan. Die Here het daar vir my gesê: “Gaan nou. Gaan sluit jou in jou huis toe. Mens, dit sal wees asof jy met toue vasgebind is terwyl jy in jou huis toegesluit is. Jy sal nie tussen ander mense kan kom nie. Ek sal jou mond toemaak sodat dit sal wees asof jy nie kan praat nie. Jy sal nie vir jou volk kan bid nie. Jy sal nie die mense wat op die verkeerde pad loop, kan waarsku nie omdat Ek jou sal keer, al wil jy graag omdat jy sien hoe opstandig die volk teen My is. Jy sal niks teen hulle kan sê nie, vir so lank as wat Ek bepaal. Maar dan sal die dag kom dat Ek jou die opdrag gee. Dan sal jy weer kan praat. En dan moet jy presies vir jou mense sê wat Ek, die Here jou God, jou beveel het om vir hulle te sê. Party van die volk sal dan na jou luister, terwyl ander hulle nie sal steur aan wat jy sê nie. Want hulle is ’n klomp opstandige mense.” “Mens, gaan vat ’n baksteen. Sit die steen reg voor jou neer. Trek dan ’n kaart van die stad Jerusalem daarop. Maak nou of jy ’n vyand is wat teen die stad optrek en die stad probeer oorwin. Bou ’n kamp vir jou soldate buite die stad. Rig jou wapens op die stad. Val die stad aan. Vat dan ’n plaat wat van yster gemaak is en plaas die plaat tussen jou en die baksteen. Daar moet ’n muur van yster tussen jou en die stad wees. Kyk in die stad se rigting. Wys ook hoe die vyand die stad Jerusalem aanval. Laat jou optrede ’n waarskuwing aan Jerusalem wees oor wat op hulle wag: die vyand gaan hulle stad oorwin. “As jy hiermee klaar is, gaan lê op jou linkersy. Maak of jy al die sondes van jou volk Israel op jou neem. Jy gaan vir die hele tyd wat jy so lê Israel se sondes dra. Hulle het 390 jaar teen My gesondig. Gaan lê op jou linkersy vir 390 dae, ’n dag vir elke jaar. As jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy gaan lê. Dan moet jy maak of jy die sondes van Juda op jou dra. Jy moet 40 dae so lê, want Juda het 40 jaar lank gesondig. Jy moet ’n dag vir elke jaar van sonde lê. En hou aan kyk na die vyand se aanval op Jerusalem. Praat ernstig met die stad oor sy sondes. Bring my boodskap na almal in die stad toe. Ek sal jou met toue vasbind sodat jy nie eens van jou een sy op die ander kan draai nie, totdat jy klaar die stad oorwin het. “Gaan kry nou eers genoeg kos. Sit dit in ’n skottel. En maak vir jou kos daarvan, so lank as wat jy op jou sy lê: 390 dae lank. Jy mag nie meer op ’n dag eet as wat Ek vir jou voorskryf nie. Jy moet dit deur die loop van die dag eet. Jy moet ook die water wat jy gedurende die dag drink, afmeet en nie méér drink as wat Ek vir jou voorskryf nie. Die kos wat jy byderhand hou, moet gebruik word om vir jou brood te maak. Die brood moet gaargemaak word op vuur wat met menslike uitwerpsel gemaak is. Jou optrede is ’n simbool van wat met die volk Israel gaan gebeur as hulle stad deur die vyand oorwin word. So gaan hulle ook onrein kos eet wanneer hulle as gevangenes weggevoer gaan word om tussen ander nasies te gaan woon.” Toe sê ek vir die Here: “Ag, Here my God, moet ek myself regtig gaan staan en vuil maak deur menslike uitwerpsel te gebruik? Ek het myself nog nooit in my hele lewe met sulke dinge vuil gemaak nie. Vandat ek ’n kind was tot nou het ek nog nooit ’n dier geëet wat van siekte gevrek het of wat dood in die veld gekry is nie. En ek het ook nog nooit enige dier geëet wat ons wet ons verbied om te eet nie.” “Goed,” sê die Here toe. “Jy mag jou brood op beesmis gaarmaak in plaas van op menslike uitwerpsel.” Die Here sê toe verder vir my: “Mens, die inwoners van Jerusalem gaan honger ly. Ek gaan sorg dat kos baie skaars word. Kos sal met ’n skaal geweeg word en mense sal dit met angstigheid eet. Selfs die water sal geweeg word, druppel vir druppel, so skaars gaan dit wees. En mense sal verslae wees terwyl hulle die water drink. Kos en water sal so skaars wees dat mense mekaar sal wantrou omdat hulle bang is iemand steel hulle voorraad. En dit sal wees omdat my oordeel op die volk rus oor hulle sondige dade en hulle opstandigheid.” “Mens, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n skeermes. Skeer jou hare en jou baard daarmee af. Gebruik dan ’n skaal om jou hare te weeg, en deel jou hare in drie hopies wat ewe veel weeg. Vat dan een derde van die hare en plaas dit in die middel van jou kaart van Jerusalem wat op die baksteen geteken is. As die stad oorwin is, verbrand dan dié hare. Vat die tweede hopie hare en strooi dit oor die kaart uit. Terwyl jy dit uitstrooi, moet jy dit met jou swaard kap. En strooi die laaste hopie hare die wêreld vol. Net so gaan Ek my volk deur oorlog verstrooi. Hou net ’n klein bietjie van die hare uit en bêre dit iewers in jou klere sodat dit nie kan wegraak nie. Vat dan ’n paar van dié hare en gooi hulle in die vuur. Hulle moet verbrand word. Van daar af sal ’n vuur uitgaan en die mense wat van Israel oorgebly het, verteer en vernietig.” So sê die Here, Esegiël se God: “Wat jy nou doen, wys wat met Jerusalem gaan gebeur. Ek het Jerusalem in die middel van die nasies geplaas. Ek het haar gekies as my liefling. Maar Jerusalem het teen My in opstand gekom en nie gedoen wat Ek vir haar gesê het om te doen nie. Sy was selfs nog slegter as die nasies wat rondom haar was. Sy het geweier om die wette na te kom wat Ek vir haar gegee het om te gehoorsaam. Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “word Ek die Een wat teen jou gaan veg, Jerusalem. Ek self gaan jou straf, terwyl al die ander volke toekyk. Ek gaan jou swaarder straf oor jou afskuwelike optrede as wat Ek enigeen nog ooit gestraf het of ooit weer sal straf. Wanneer dit gebeur, sal ouers hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. So erg sal die hongersnood wees. Selfs die paar mense wat die ramp oorleef, sal Ek straf deur hulle tot aan die uithoeke van die aarde te verstrooi, ver van hulle eie land af. “Ek sweer by Myself,” sê die Here, Esegiël se God, “dat Ek julle heeltemal van My af sal losmaak. Ek sal geen genade aan julle bewys nie omdat julle die plek waar Ek woon, vuil gemaak het met julle afskuwelike afgode en slegte dade. ’n Derde van jou mense sal in die stad doodgaan deur die groot hongersnood en deur pessiektes. ’n Derde van die mense in die stad sal deur die vyand doodgemaak word wat rondom die stad gaan wees. En ’n derde sal vlug en oor die hele aarde verstrooi word, en Ek sal hulle met oorloë en moeilikhede agtervolg. Dan eers sal my woede oor hulle slegte dade bedaar en sal Ek tevrede wees. En dan sal Israel besef dat Ek, die Here, met hulle gepraat het en hulle gewaarsku het oor hulle slegte dade. Hulle sal verstaan dat Ek dit gedoen het omdat Ek hulle liefhet. “Ek verander Jerusalem in ’n ruïne. Al die nasies wat rondom jou bly, sal met Jerusalem spot. En almal wat naby die stad verbygaan, sal ook met die puinhope die spot dryf. Al die mense sal vir jou lag en jou spot. Jy sal ’n waarskuwing wees aan ander dat God se oordeel hulle ook gaan tref as hulle nie dadelik ophou met hulle slegte dade nie. Hulle sal sien hoe Ek die volk in my woede straf as Ek jou die dag vir jou dade laat boet. “Ek sal elke dag op julle skiet totdat Ek julle uitgeroei het, mense wat in Jerusalem bly. Ek sal julle skiet met ’n tekort aan kos wat al erger sal word totdat julle van die honger doodgaan omdat elke krummeltjie kos gedaan is. Die hongersnood sal al erger word totdat niemand meer kan oorleef nie. Ja, Ek stuur ’n hongersnood. Wilde diere en roofdiere sal julle aanval en julle kinders doodmaak. Ek stuur pessiektes en oorlog teen julle. Ek stuur die vyand wat julle met oorlog sal uitroei. Ek, die Here, het met julle gepraat.” Toe het die Here weer met my gepraat. “Mens, kyk na die berge van Israel. Sê vir hulle wat Ek vir jou gaan sê. Jy moet sê: Berge wat in Israel se grondgebied is, hoor die woord van die Here, wat ook Esegiël se God is. So sê die Here vir die berge en heuwels, vir al die klowe en valleie wat daar in die berge is: Ek gaan oorlog laat aanbreek. Al die tempels vir vreemde gode wat op julle opgerig is, sal Ek laat verwoes deur die leërs van die vyand wat op julle sal kamp opslaan. Al die altare wat op julle opgerig is, sal vernietig word. Ook die altare waarop wierook vir heidense gode verbrand is, sal stukkend geslaan word. Ek sal die mense wat die heidense gode aanbid, voor die altare doodmaak. Ek sal die lyke van die Israeliete wat die afgode aanbid het, voor die afgode neergooi. Hulle bene sal rondom die altare vir hulle afgode gestrooi lê. Waar julle ook al bly, Israel, Ek sal julle gaan uithaal. Ek sal julle stede laat vernietig deur die vyand wat Ek stuur. Ek sal die hoë plekke waar julle afgode aanbid het, laat verwoes. Julle afgodsaltare en julle wierookaltare sal in stukke gebreek word. Daar sal niks oor wees van alles wat julle met soveel moeite vir julle afgode gebou het nie. Daardie dag wanneer julle lyke so tussen die verwoeste stede en altare rondlê, sal julle moet erken dat Ek die Here is. “’n Klompie van die mense sal die rampe oorleef wat Ek oor hierdie land bring. Hierdie groepie sal oor die hele wêreld tussen al die nasies moet gaan bly as gevangenes van hulle vyande. En dan, wanneer hulle as gevangenes in ’n vreemde land sit, sal hulle My skielik weer onthou. Hulle sal raaksien hoe seer hulle My gemaak het toe hulle ongehoorsaam aan My was en voor vreemde afgode gaan buig het en offers aan hulle gebring het. Dan sal hulle hulleself haat oor al die verkeerde dinge wat hulle aangevang het. Daardie dag sal hulle erken dat Ek alleen die Here is. En dan sal hulle weet dat Ek doodernstig was toe Ek voorspel het dat al hierdie verskriklike rampe oor hulle gaan kom.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Slaan julle hande in skok saam. Snak na julle asem van skok. Roep uit; kerm en kla. Want die rampe wat vir Israel voorlê, is te verskriklik vir woorde. Mense gaan links en regs doodgemaak word in oorloë, deur hongersnood en deur dodelike siektes. Wie ver is, sal ’n dodelike siekte kry en doodgaan. Wie naby is, sal deur die vyand doodgemaak word. Wie oorbly en die siektes en oorloë oorleef, sal van die honger doodgaan. Dan eers sal my woede oor julle sonde bedaar. Dan, wanneer julle lyke tussen julle afgode en die altare vir julle afgode lê op al die plekke waar julle die afgode aanbid het, sal julle besef dat Ek alleen die Here is. Net Ek! Ek sal julle verpletter en vermorsel. Ek sal julle stede verlate plekke maak, plekke waar g’n lewende mens woon nie. Julle hele land sal verwoes en verlate bly lê. En dan sal Israel besef dat Ek regtig die Here is.” Die Here het toe weer met my gepraat. Hy het vir my gesê: “Ek is die Here jou God. Sê nou vir Israel: Mens, die einde van alle dinge kom een van die dae. Dit is voor die deur! Na watter kant toe jy ook al kyk, of dit na die ooste of die weste of die noorde of die suide is, dis klaar met jou land. Daar’s geen hoop meer oor vir jou nie, want jy het My baie kwaad gemaak. Ek gaan jou straf. Ek roep jou nou nader sodat jy verslag kan kom doen oor al die vieslike dade wat jy aangevang het. Ek sal jou glad nie jammer kry nie. Nie een van jou verskonings sal My laat afsien van my planne nie. Ek gaan jou straf oor al die slegte dade wat jy gedoen het. Al die slegte dinge wat jy gedoen het, sal nou met jou gebeur. Dan sal jy besef dat Ek regtig jou God is.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Jy sal met een hou na die ander getref word tot jy vuisvoos is. Jou einde is op jou. Jy staar die dood in die gesig. Dis klaar met jou! Die dag dat jy vernietig gaan word, is voor die deur, Israel. Die tyd van straf het vir jou aangebreek. Groot moeilikheid wag vir jou. Niemand sal nou van vreugde uitroep nie. Nee, jy sal net hoor hoe mense vol vrees skreeu om hulp. Ek gaan my humeur binnekort met jou verloor. Dan gaan Ek jou straf vir al die slegte dinge wat jy gedoen het. Ek sal jou nie spaar nie, en Ek sal jou ook nie jammer kry nie. Ek sal jou terugbetaal vir al die vieslike dade wat jy gedoen het. Dan sal jy weet dat dit Ek, die Here, is wat jou so slaan. “Die dag het aangebreek dat Ek jou gaan veroordeel. Jy gaan heeltemal vernietig word. Die mense se slegte dade was nog nooit so baie soos nou nie, en dan is hulle nogal ewe trots op hulleself! Hulle het ander mense gewelddadig behandel, en nou sal hulle gewelddadig behandel word om hulle terug te kry vir al hulle slegte dade. Nie een van daardie slegte mense wat so trots op hulself is, sal die ramp oorleef wat Ek stuur nie. Hulle sal alles verloor wat hulle besit. Ja, die dag dat die oordeel aanbreek, het nou gekom. Dit is vandag. Mense wat dink dat hulle vandag nog iewers ’n winskoop raakgeloop het in ’n saketransaksie, moenie daaroor bly wees nie. En mense wat besigheid doen en ’n verlies gemaak het, moenie daaroor huil nie. Want hulle almal gaan my straf ervaar. En as enigiemand wat besigheid doen die ramp sou oorleef, sal hulle in elk geval nooit weer kan terugkeer na hulle besigheid nie. Want wat God gesê het, geld vir almal. Hulle is almal ewe skuldig voor My oor hulle slegte dade. Niemand sal op die ou end bly lewe nie. “Die hele weermag van Israel is opgeroep om te kom veg, maar die geveg sal nie eens begin nie. Want voor jy kan begin veg, tref my straf almal wat in die land woon. Almal wat uit die stad wegvlug, sal deur vyande rondom die stad doodgemaak word. En die mense wat in die stad bly, sal doodgaan van hongersnood en dodelike siektes. Die paar mense wat oorleef en na die berge vlug, sal soos tortelduiwe klink wat koer soos hulle huil oor hulle sondes. Mense sal nie hulle hande kan optel nie en hulle bene sal kragteloos onder hulle padgee. Hulle sal hulle aantrek asof hulle op pad is na ’n begrafnis. Hulle sal heeldag bang wees. Hulle sal bewe vir enigiets wat hulle sien. En hulle sal hulle klaarmaak om as gevangenes na ’n vreemde land weggevat te word. “Hulle sal hulle geld weggooi omdat dit niks meer werd sal wees nie. Geen geld sal ’n mens in elk geval kan red as die Here vir hom kwaad word nie. Hulle geld sal hulle nie kan help nie. Hulle sal nie daarmee kos kan koop nie, want daar sal geen kos wees nie. Dit is juis oor hulle geld dat hulle soveel slegte dinge aangevang het. Hulle was so trots op al hulle goue juweliersware. Dis dieselfde juweliersware wat hulle gesmelt het om afgode te maak wat afskuwelik en walglik is. Dit is hoekom Ek nou sorg dat hulle geld en besittings waardeloos en walglik vir hulle sal word. Ek sal hulle geld en hulle besittings vir die vyande gee wat Ek na hulle land toe gaan stuur. Diewe sal al hulle kosbare goed steel. Ek sal niks doen as diewe selfs die tempel, my eie huis hier op aarde wat vir My baie kosbaar is, besteel en van ’n kant af bemors nie. “Maak my volk reg om as gevangenes na ’n ver en vreemde land weggevoer te word, want die mense wat in die howe moes werk, het self ’n spul moordenaars geword. Jerusalem is van hoek tot kant vol geweld. “Ek bring die slegste en die wreedste nasies hiernatoe. Hulle sal julle huise vir hulle vat. Ek breek die groot huise af van almal wat so trots was op wat hulle het, en Ek trek ook weg uit my eie huis, die tempel daar in Jerusalem. “My volk sal vol vrees en benoudheid rondhardloop. Hulle sal wens dat daar weer vrede in hulle land moet kom, maar daar sal geen vrede wees nie. Daar sal net nog meer rampe en moeilikhede wees; dit sal nooit ophou nie. Hulle sal die een gerug na die ander hoor van rampe wat oor die volk kom. Dan sal mense na die godsdienstige leiers toe hardloop en vra: ‘Wat sê die Here vir ons?’ Maar die leiers sal hulle ook nie kan help nie. Niemand sal vir hulle kan sê wat om te doen nie. Die regeerders van die land sal hulle ook nie kan help nie. Die regeerders sal self staan en huil, so hartseer sal hulle wees. En die mense sal bewe, so bang sal hulle wees. Dan sal Ek al die slegte dade wat mense aan mekaar gedoen het, aan hulle terugdoen. Hulle sal gestraf word met die straf wat hulle verdien. Dan eers sal hulle besef en erken dat Ek die Here is.” Op die sewentiende September 592 v.C., in die sesde jaar dat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes weggeneem is na ’n vreemde land, was ek by my huis. Die leiers van my volk het by my gekuier. Ek het skielik bewus geraak daarvan dat die Here by my was en dat Hy Homself aan my wil wys. Ek het toe Iemand gesien wat soos ’n Mens gelyk het. Van sy heupe af tot by sy voete het dit gelyk of die Man van vuur gemaak was. En van sy heupe af boontoe het dit gelyk of Hy van vuurwarm, gloeiende metaal gemaak was. Hierdie Man het iets na my toe uitgesteek wat soos sy hand gelyk het. Toe het Hy my aan my hare opgetel. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat my opgetel het. Hy het my na Jerusalem toe gevat. Dit alles het met my gebeur toe ek vir God gesien het. Die Gees het my toe neergesit by die ingang na die huis van die Here op aarde, daar aan die noordekant van die gebou. Net binne die ingang van die huis van die Here het mense ’n standbeeld vir ’n afgod opgerig. Die Here was woedend omdat hierdie afgodsbeeld in sy huis opgerig was. Skielik het die God van Israel in al sy mag daar verskyn. Ek het Hom herken omdat ek Hom ook voorheen in die vallei gesien het. Toe sê die Here vir my: “Mens, kyk op na daardie kant toe, daar na die noordekant.” Ek het toe gekyk, en daar, reg langs die ingang na die altaar in die huis van die Here, het die afgod gestaan waaroor die Here so verskriklik kwaad was. God sê toe vir my: “Mens, sien jy wat hierdie mense aanvang? Sien jy watter slegte dade die volk van Israel doen om My uit my eie huis weg te jaag? Maar kom, laat Ek jou nog erger dade as hierdie wys!” Toe vat die Here my na die voordeur van die huis van die Here toe. Ek sien toe dat daar ’n gat in die muur gemaak is. Hy sê toe vir my: “Mens, breek daardie gat in die muur nog groter!” Toe ek die muur verder afbreek, sien ek dat daar ’n deur is wat na ’n versteekte ingang lei. Toe sê God vir my: “Stap nou ’n bietjie deur daardie ingang en gaan kyk watter afskuwelike, slegte dinge die mense daarbinne aanvang!” Ek het toe in die versteekte kamer ingekruip. Ek sien toe die mure is vol geverf van slange, akkedisse en ander reptielagtige diere. Ek sien toe dis afbeeldings van afgode wat skelm deur die volk Israel aanbid word. Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.” En toe sê die Here verder vir my: “Ek gaan jou dinge wys wat die volk doen wat selfs nog afskuweliker is as dit!” Toe vat die Here my na die deur aan die noordekant van die huis van die Here. Daar het ’n klomp vroue gesit. Hulle het gehuil omdat ’n afgod kwansuis op dié dag dood is, en die afgod Tammus gesê het hulle moet huil. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra die Here. “Maar kom Ek gaan wys jou selfs nog groter slegte dade as dit!” Toe vat die Here my binne-in sy huis in. Daar het 25 mans gestaan, met hulle rûe na die huis van die Here gedraai. Hulle het na die oostekant gekyk waar die son opkom. Hulle het die son aanbid! “Het jy dit gesien, mens?” vra Hy. “Moet Ek maak of dit sommer niks is nie dat my volk sulke verskriklik slegte dade doen? En nou doen hulle boonop ook gewelddadige dade teen ander mense. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek is woedend oor wat hulle doen! Daarom gaan Ek my humeur verloor. Ek gaan hulle straf hiervoor. Daar sal geen verskoning vir hulle wees nie. Ek sal hulle ook nie jammer kry nie. Selfs al roep hulle hoe hard na My om te wys hoe jammer hulle skielik is, Ek sal nie na hulle luister nie.” Toe het ek die Here met ’n harde stem hoor roep: “Laat kom die manne wat Ek gekies het om die stad te straf! Sê vir hulle dat hulle hulle wapens moet saambring!” Onmiddellik het ses manne van die buitenste hek van die huis van die Here, daar van die noordekant af nader gekom. Elkeen het baie gevaarlike wapens in sy hande gehad. Tussen hulle was daar nog een man wat klere aangehad het soos iemand wat in die huis van die Here diens doen. Hy het ’n pen en ’n boek by hom gehad. Al sewe van hulle het tot by die altaar gestap wat van brons was daar in die huis van die Here. Toe het die Here Homself kom wys, dit was daar van agter die digte gordyn af wat in die huis van die Here is. Die Here het toe na sy huis se ingang gegaan. Die Here roep toe na die man wat in sy huis diens doen en wat die pen en boek by hom het. Die Here sê toe vir hom: “Stap deur die strate van die stad. Maak met jou pen ’n merk op die voorkop van almal wat hartseer is en wat huil oor die sondes wat hulle heeldag rondom hulle sien.” Toe hoor ek hoe die Here vir die ses ander manne sê: “Volg hierdie man soos hy deur die stad stap en maak elkeen dood wat nie deur hom op die voorkop gemerk word nie. Julle mag niemand oorslaan nie. Julle mag nie een jammer kry nie. Maak die laaste een dood, of hy oud of jonk is, ’n meisie of ’n vrou of klein kindertjies. Die enigstes aan wie julle niks mag doen nie, is die mense wat deur hierdie man gemerk is. Begin sommer hier as julle by my huis uitstap.” Die manne het toe dadelik die 70 leiers doodgemaak wat voor vreemde afgode offers gebring het. “Maak my huis onheilig; sorg dat niemand hier enige godsdienstige aktiwiteite kan verrig nie,” het die Here toe beveel. “Maak die area rondom my huis vol van die lyke van mense wat deur julle doodgemaak is! Gaan nou!” Die manne het toe deur die stad gegaan en presies gedoen soos die Here hulle beveel het om te doen. Ek het gesien hoe hulle die opdrag uitvoer. Ek was alleen. Toe het ek met my gesig op die grond voor die Here neergeval en gepleit: “Ag, Here my God, gaan U almal in Israel doodmaak omdat U woedend is oor Jerusalem se slegte dade?” Toe sê Hy vir my: “Die slegte dade van die mense van Israel en Juda het by die dag net al hoe meer geword. Hulle hele land is vol moorde wat gepleeg is. Die hele stad is vol slegte dade. En dan sê die mense so ewe: ‘Die Here sien mos nie wat ons doen nie! Die Here is nie meer in hierdie land nie. Hy is weggevoer saam met die gevangenes wat uit die stad na ’n vreemde land geneem is!’ Daarom gaan Ek nie een van hulle spaar nie. Ek gaan niemand jammer kry nie. Ek gaan hulle terugbetaal vir al die slegte dade wat hulle gedoen het.” Hierna het ek die man sien terugkom wat in die huis van die Here diens doen en wat ’n pen en ’n boek gedra het. Hy het kom sê: “Ek het alles gedoen wat U gesê het ek moet doen.” Terwyl ek nog so kyk, val my oog op die horison bokant die koppe van die wesens. Maar teen die horison was daar iets wat soos die sitplek van ’n koning gelyk het; dit was van die helderste blou kleur waaraan ’n mens kan dink. Toe sê die Here vir die man wat in sy huis diens gedoen het: “Stap tussen die wiele in wat onder die wesens draai en vat daar ’n hele hand vol van die gloeiende kole. Jy moet hierdie kole oor die stad Jerusalem uitstrooi.” Die man het dit toe gedoen terwyl ek hom dophou. Die wesens het aan die suidekant van die huis van die Here gestaan toe die man onder hulle wiele ingestap het. Dit het gelyk of ’n wolk die huis van die Here vul toe die Here daar verskyn het. Toe het die teenwoordigheid van die Here opgestyg bokant die vier wesens. Die Here het na die deur van sy huis toe gegaan. Die hele huis was vol van die Here se krag. Selfs buitekant die huis van die Here het dit geblink toe die Here daar verskyn het. Die vlerke van die wesens wat beweeg het, het ’n oorverdowende geraas gemaak wat soos die stem van die Here geklink het. ’n Mens kon die geraas tot buite die huis van die Here hoor. Die Here sê toe vir die man wat in sy huis diens doen: “Gaan nou tussen die wesens in en vat weer van die gloeiende kole wat tussen die wiele onder die wesens is.” Die man het toe ingegaan tussen die wiele en langs een van die wiele gaan staan. Toe het een van die boodskappers sy hand uitgesteek en van die kole uit die vuur gevat wat tussen die wesens brand en wat natuurlik ook vuurwarm was. Die wese het die kole in die hand gesit van die man wat in die huis van die Here diens doen. Die man het toe die kole gevat en uitgegaan. Al vier die wesens het iets onder hulle vlerke weggesteek gehad wat soos menslike hande gelyk het. Elkeen van die vier boodskappers of wesens het ook vier wiele langs hulle gehad. Hierdie wiele het geskitter, kompleet asof dit van glansende edelstene gemaak is. Die vier wiele het presies dieselfde gelyk. Elke wiel het ook ’n wiel binne-in hom gehad wat dwars in hom was. Die wiele het gemaak dat die wesens in enige van die vier windrigtings kon beweeg wat hulle wou, sonder om om te draai as hulle beweeg. Hulle kon reguit in die rigting gaan wat hulle koppe gewys het sonder om ooit na dié kant toe te draai. Die wesens en ook die wiele was vol oë. Die wesens het oë reg oor hulle lywe gehad, en ook oor hulle hande en rûe en vlerke. Ek het gehoor iemand verwys na die wiele as die “warrelende wiele”. Elkeen van die vier boodskappers het vier gesigte: die eerste was dié van ’n bees, die tweede was ’n menslike gesig. Die derde gesig was dié van ’n leeu en die vierde dié van ’n arend. Toe het die wesens opgestyg. Dit was presies dieselfde beeld wat ek ook langs die Kebarrivier gesien het. Terwyl die wesens beweeg, het die wiele saam met hulle beweeg. En wanneer die wesens in die lug beweeg het, het die wiele langs hulle gebly en saam met hulle beweeg soos hulle gevlieg het. En as die wesens tot stilstand kom, het die wiele ook stil gaan staan. Die Gees van die wesens was in die wiele. Die Here het toe self na die deur van sy huis toe gegaan, en van daar af het Hy na die sitplek bokant die boodskappers gegaan. Terwyl ek nog kyk, het die boodskappers met hulle wiele na die oostelike hek van die huis van die Here toe gevlieg. Die Here het bokant die boodskappers gesit. Dit was dieselfde boodskappers wat ek onder die God van Israel se troon gesien het toe ek die Here vroeër by die Kebarrivier gesien het. Ek het geweet hulle is boodskappers, want elkeen van hulle het vier gesigte gehad en vier vlerke, en wat soos menslike hande gelyk het, was onder hulle vlerke versteek. Hierdie boodskappers se gesigte het ook nes die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het. En hulle het ook so reguit vorentoe beweeg, nes die wesens by die Kebarrivier. Die Gees van die Here het my toe ook opgetel. Hy het my na die ingang van sy huis geneem, daar aan die oostekant. Daar sien ek toe 25 van die belangrikste leiers van Jerusalem. Onder die leiers was Jaäsanja die seun van Assur en Pelatja die seun van Benaja. Hulle almal is leiers onder my mense. Toe sê die Here vir my: “Mens, hierdie mans is verantwoordelik vir die slegte dade en die verkeerde raad wat deesdae so volop in Jerusalem voorkom. Dit is hulle wat vir die mense sê: ‘Is dit nie nou ’n goeie tyd om huise vir julle hier in die stad te bou nie? Ons stad is soos ’n sterk ysterpot. Binne-in hierdie sterk ysterpot sal ons veilig wees sodat geen ramp ons ooit sal tref nie.’ Daarom moet jy hard en duidelik oor hierdie leiers sê wat Ek vir jou sê.” Toe het die Here se Gees vir my gesê wat ek oor hierdie leiers moet sê: “Dit is wat die Here sê vir die volk Israel: Is dit wat julle vir die volk sê? Goed, Ek het dit gehoor. Ek ken in elk geval elke gedagte wat in julle opkom. Julle het aangehou moord pleeg totdat die strate van Jerusalem vol lyke lê. Daarom, sê die Here julle God nou vir julle, sál die stad wel soos ’n ysterpot word. Die mense wat onder julle slegte dade gely het, is soos stukke vleis wat in die ysterpot gegooi is. Maar julle sal glad nie veilig wees nie. Binnekort sleep Ek julle almal uit die stad uit. Julle sal die grootste oorlog sien waarvoor julle nog altyd bang was,” sê die Here die God van Esegiël. “Ek sal julle uit die stad Jerusalem uitjaag, en dan sal Ek julle aan vreemdelinge oorgee wat julle sal straf soos Ek wil hê dat julle oor julle slegte dade gestraf word. Julle sal doodgemaak word die hele pad tot by die grense van julle land. Dan sal julle regtig weet dat Ek die Here is. Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot wees wat julle beskerm nie. Julle sal nie veilig wees teen gevare nie. Ek sal julle straf tot daar teen die grense van julle land. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Want julle het mos geweier om na My te luister. In plaas van na My te luister het julle eerder al die slegte dinge gedoen wat die nasies rondom julle vir julle geleer het.” Terwyl ek nog praat, is Pelatja die seun van Benaja skielik dood. Toe val ek voor die Here neer en roep hard uit: “Here my God, moet U al die mense wat aan Israel behoort dan doodmaak?” Toe het die Here weer met my gepraat: “Mens, die mense wat in Jerusalem oorgebly het, praat oor hulle familielede wat as gevangenes na ’n vreemde land weggeneem is. Hulle sê: ‘Hierdie familie van ons is ver van die Here af, daar waar hulle in ’n vreemde land bly. Daarom het die Here hulle land nou seker vir ons gegee!’ Omdat hulle so sê, moet jy vir die mense wat gevangenes in daardie vreemde land is, gaan vertel dat die Here, Esegiël se God, vir hulle sê: Ek het julle verstrooi sodat julle nou die hele wêreld vol is, ver van julle eie vaderland af. Maar onthou dit, Ek sal altyd daar wees vir julle, waar julle ook al is. Ek sal julle beskerm en oppas. “Sê ook vir hierdie mense, Esegiël: Ek sal julle weer eendag bymekaarmaak en terugbring van al die lande af waarheen Ek julle weggejaag het. En Ek sal die land Israel daardie dag weer vir julle teruggee as julle eie land. “Wanneer die mense daardie dag terugkom na hulle eie vaderland toe, sal hulle elke spoor van afgode en van slegte dade uitvee. Daardie dag sal Ek hulle harte skoon was en nuut maak. Hulle sal anders dink en anders lyk. Ek sal hulle hart wat nou van klip en yster gemaak is, wegvat en vir hulle ’n hart gee wat van vleis gemaak is sodat hulle My reg kan dien. Dan sal hulle luister na wat Ek vir hulle sê, en hulle sal dit ook doen. Hulle sal presies alles doen net soos Ek vir hulle beveel om te doen. Dan sal hulle my volk wees en Ek sal hulle God wees. Maar daardie mense wat aanhou slegte dinge doen en afgode aanbid, sal Ek vernietig. Hulle sal betaal vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het,” sê die Here, Esegiël se God. Toe het die boodskappers onder die troon van die Here hulle vlerke gelig en in die lug opgestyg met die wiele wat langs hulle draai. En die Here het op sy troon bokant die boodskappers gesit. Toe het die Here weggegaan uit die stad uit en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan. Nadat ek al hierdie dinge gesien het, het die Gees van die Here my opgetel en teruggebring na die vreemde land waar ons gevangenes was, daar na Babilonië toe. Ek het daar saam met my volksgenote as gevangene gebly. En so het alles wat ek oor Jerusalem gesien het, geëindig. Ek het vir my mense wat in die vreemde land gevangenes was, alles vertel wat die Here my gewys het. Die Here het weer met my gepraat en vir my gesê: “Mens, jy bly tussen mense wat heeldag en aldag teen My in opstand is. Dit is mense wat oë het om die waarheid self raak te sien, maar hulle weier om te kyk. Hulle het ore om na My te luister, maar hulle weier om te hoor. Hulle is rebelle. Daarom moet jy nou vir jou volk demonstreer wat dit beteken om as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer te word. Pak net genoeg in ’n rugsak wat jy kan dra. Sluit dan jou huis en vensters dig toe, asof jy op ’n lang reis vertrek. Tref al jou voorbereidings vir die reis helder oordag sodat almal jou kan sien. Miskien sal hulle dan snap wat Ek vir hulle probeer sê. Maar hulle is so opstandig. “Bring dan jou bagasie buitetoe gedurende die dag terwyl jou mense sien wat jy doen. En dan, terwyl jy almal se aandag het, gaan teen die aand uit jou huis uit, net soos gevangenes doen wat die lang reis na ’n vreemde land aanpak. Grawe ’n gat deur die muur van jou huis terwyl jou mense na jou kyk en tel jou besittings deur die gat. Terwyl hulle dit sien, tel jou bagasie op jou skouers en stap dan weg as die donkerte aanbreek. Maak jou gesig toe. Moenie rondkyk nie. Alles wat jy doen, sal vir Israel herinner aan wat dit beteken as ’n mens deur jou vyande as gevangene weggevoer word.” Ek het toe alles presies gedoen nes die Here vir my gesê het. Helder oordag het ek my bagasie uit die huis gedra. In my bagasie was net dit wat ’n mens sou inpak as jy as ’n gevangene weggevoer word. Daardie aand het ek met my hande ’n gat in die muur gemaak terwyl die mense vir my kyk. Ek het in die donkerte buitetoe gegaan met my bagasie op my skouers. Die volgende oggend het die Here weer met my gepraat. Hy het vir my gesê: “Mens, die volk Israel is mense wat teen My in opstand is. Hulle het vir jou gevra wat alles beteken wat jy gisteraand gedoen het. Gaan sê nou vir hulle: Die Here, die God van Esegiël, sê dat wat Esegiël gedoen het, ’n boodskap vir koning Sedekia is wat in Jerusalem woon, en vir die mense van Israel wat saam met hom in die land van Israel woon. Verduidelik dan dat wat jy gedoen het, Esegiël, vir die volk wil wys wat baie binnekort met hulle gaan gebeur. Hulle gaan van hulle huise verdryf word. Hulle gaan deur hulle vyande as gevangenes na ’n vreemde land toe gevat word. “Selfs koning Sedekia van Jerusalem sal uit die stad verdryf word. Hy sal een nag deur ’n gat in die stadsmuur moet klim. En hy sal slegs die besittings wat hy op sy skouers kan dra saam met hom vat. Hy sal sy gesig toemaak soos iemand wat as ’n gevangene weggeneem word om die doodstraf te kry vir sy slegte dade. En hy sal nooit weer sy vaderland sien nie. Ek gaan hom vang soos wildvangers ’n verskrikte bok in hulle net vang. En dan sal Ek hom na Babilonië, ’n ver en vreemde land, wegvoer. Hy sal nie die vreemde land kan sien nie omdat sy oë uitgesteek sal wees, en hy sal in daardie vreemde land doodgaan. “Ek sal ook sy helpers en die mense wat hom bedien en die wagte wat hom oppas, saam met hom laat wegneem na die ver en vreemde land. Hulle sal in die oorloë doodgaan. En wanneer hulle in ’n ver en vreemde land sit, sal hulle weet en erken dat Ek die Here is. Ek sal ’n paar van hulle nie laat doodmaak in die oorlog en hongersnood en deur dodelike siektes nie. Hierdie paar mense wat oorbly, sal dan met groot skaamte vir die vyande wat hulle gevang het, vertel van al die slegte dade wat hulle aangevang het. Daardie dag sal hulle almal weet en erken dat Ek die Here is!” Hierna het die Here ook nog vir my gesê: “Mens, bewe van angs en vrees terwyl jy jou kos eet. En word bang elke keer as jy water drink, asof dit die laaste water is wat jy sal hê om te drink. Gaan sê vir die volk die Here, die God van Esegiël, sê vir hulle die volgende oor wat die toekoms inhou vir Israel en vir die mense wat in Jerusalem bly: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet, so bang sal hulle wees. En hulle sal klein slukkies water drink terwyl hulle wanhopig rondsoek omdat daar nie meer kos en water in hulle land oor sal wees nie. Ek sal hulle land stroop sodat daar geen kos of water sal wees nie. En Ek doen dit omdat hulle so sleg en vol geweld is. Hulle stede sal tot op die grond toe afgebreek word. En niemand sal meer op die plase bly en die lande bewerk nie. Daardie dag sal julle almal weet en erken dat Ek die Here is.” Die Here het weer ’n keer met my gepraat en vir my gesê: “Mens, watter spreekwoord is dit wat Ek hoor wat die mense van Israel deesdae gebruik? Julle sê mos: Die tyd gaan verby. En net mooi niks word waar van al daardie verskriklike dinge wat die mense wat namens die Here praat oor ons aankondig nie. Wel, gaan sê dan nou vir die mense dat die Here, die God van Esegiël, sê: Ek gaan sorg dat julle nooit weer hierdie spreekwoord gebruik nie omdat alles waar sal word wat die mense wat namens My praat julle oor gewaarsku het. Daar sal ’n nuwe spreekwoord onder julle uitgedink word in die plek van die ou een. Julle sal sê: Die tyd het gekom dat alles waaroor die mans van God ons gewaarsku het, net so gebeur het soos hulle vir ons gesê het. “Daardie dag sal julle sien wat kom van al die vals beloftes wat party mense gemaak het, en nogal asof hulle dit van My gehoor het, naamlik dat daar in die toekoms vrede en voorspoed in julle land gaan wees. Het julle vergeet? Ek is die Here. En wat Ek sê, gaan gebeur. Ek het gedreig dat Ek julle oor julle slegte dade gaan straf, en dit sal gebeur. Dit sal binnekort gebeur, sonder dat iets of iemand dit kan keer. Want julle is ’n klomp mense wat heeltyd teen My in opstand is, Israel. Ek sal julle verwoes en vernietig, nes Ek gedreig het Ek met julle gaan doen. En dit gaan nog in julle almal se leeftyd gebeur,” sê die Here, die God van Esegiël. Die Here het verder vir my gesê: “Mens, die inwoners van Israel sê dat die dinge waaroor jy hulle waarsku dat die Here hulle gaan straf, eers oor ’n lang tyd gaan gebeur. Hulle sê hulle hoef hulle nie nou al te bekommer nie, want die dinge waarmee jy hulle dreig, sal eers êrens in die verre toekoms gebeur. Daarom moet jy vir hierdie klomp mense gaan sê dat die Here, die God van Esegiël, sê: Wat Ek gedreig het om met julle te doen, gaan nou gebeur. Daar is geen uitstel vir my straf nie. Ek doen alles nes Ek belowe het dit gaan gebeur. Wat Ek gesê het, gaan gebeur,” sê die Here, die God van Esegiël. Die Here het met my gepraat en vir my gesê: “Mens, gaan vertel wat Ek nou vir jou sê oor daardie spul vals boodskappers wat maak asof hulle namens My praat, maar wat eintlik net leuens kwytraak. Hierdie mense dink mos ’n klomp mooi stories uit en sê dan dis Ek wat met die volk praat. Wel, gaan sê vir hulle: Dit sê die Here oor wat hulle doen. Ek gaan julle vernietig en verwoes omdat julle leuens uitdink en dan sê dat dit Ek is wat so sê. Julle sê julle het My gesien, maar al die tyd het julle niks gesien nie. “Israel, hierdie mense wat sê dat hulle namens My praat, is soos jakkalse wat in die puinhope van ’n verwoeste stad rondkrap, maar niks kry om te eet nie. Die mure wat rondom my volk gebou is om hulle te beskerm is plek-plek deur die vyande afgebreek. En hierdie mense doen niks om daardie mure weer op te bou nie. Hulle help julle nie om regop te bly staan die dag as die vyand julle aanval en julle lewe bedreig nie. Daardie dag gaan Ek julle straf vir al julle slegte dade. Nee, in plaas daarvan om julle op te bou, het hierdie mense vir julle gelieg. Hulle het gesê: ‘Wat ons vir julle sê, kom direk van die Here af!’ Maar die Here het nooit met hulle gepraat nie, en Hy het niks vir hulle gesê nie. En tog verwag hulle dat die Here sal doen wat hulle sê! Julle sê julle het die Here gesien en Hy het met julle gepraat. Julle sê dat die Here self aan julle verskyn het. Hoe kan dit wees as Ek nie eens met julle gepraat het nie? “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: Omdat julle lieg en valslik sê dat julle van My gehoor en My gesien het, sal Ek self julle vyand word. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat. Ek sal hierdie mense wat lieg en sê dat hulle namens My praat, met die vuis bykom. Ek sal hulle almal wegjaag sodat hulle nie meer tussen julle sal kan bly nie. Nie eens hulle name sal ooit weer in hierdie volk se sensus voorkom nie. En hulle sal nooit weer hulle vaderland sien nie omdat Ek hulle wegjaag na ’n vreemde land. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. “Hierdie mense het my volk op die verkeerde paaie laat loop. Hulle het gesê alles sal goed gaan, terwyl niks reg geloop het nie. Hulle sê daar sal vrede wees terwyl daar net oorlog op julle wag. Dis of hierdie klomp mense ’n bouvallige muur bou wat nie kan bly staan nie, en dan kom die leuenaars wat sê hulle praat namens My en verf hierdie muur wit sodat dit lyk of hy sterk is. En dan dink hulle boonop die verf sal die muur regop hou. Wel, sê vir al die mense wat hierdie muur verf dat hulle muur binnekort sal omval. Daar gaan ’n swaar reënbui kom, met groot haelstene en ’n sterk wind. En dan sal die muur omval. Daardie dag as die muur val, sal die mense uitroep en vra: ‘Waar is die verf wat julle aan die muur gesit het?’ “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou: Ek maak julle geverfde muur gelyk met die grond met die storm wat Ek stuur omdat Ek baie kwaad is vir julle. Die swaar reën en die haelstene wys hoe kwaad Ek is oor julle slegte dade. Ek breek julle muur tot op sy fondament af. En die dag as julle muur omval, val hy bo-op julle. Hy sal julle plat val. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is! “Eers dan sal my woede bedaar teen julle muur en teen almal wat die muur wit geverf het. Dan sê Ek vir julle: die muur en almal wat dit wit geverf het, is weggevee. Hulle het leuens vertel en dan gesê dis Ek wat praat. Hulle het gesê daar wag vrede vir my volk en vir Jerusalem, terwyl daar nie vrede kom nie. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.” “Mens, jy moet ook met die vroue praat wat sê dat hulle namens My praat, maar dan is dit eintlik net stories wat hulle uitgedink het. Jy moet vir hierdie vroue sê die Here, die God van Esegiël, dink die volgende oor hulle: Ek gaan julle vernietig omdat julle soos ’n voëlvanger my volk in ’n net gevang het. Julle het die oumense en die jongmense met julle liegstories gevang. Julle het mense getoor om hulle in julle mag te kry sodat hulle sal doen wat julle wil hê hulle moet doen. Dink julle julle kan mense van die môre tot die aand bedrieg en daarmee wegkom? Kan jy ander in ’n net vang sonder om self in ’n net gevang te word? Julle het mense op ’n pad gelei sodat hulle al verder van My af weggegaan het, en julle het boonop van hulle betaling gekry om dié boel leuens aan hulle te verkondig. Julle het leuens aan mense vertel wat graag leuens wil hoor. En so het julle mense doodgemaak wat nie doodgemaak moes word nie. En julle het lewe belowe aan mense wat nie gaan lewe nie. “Daarom breek Ek al die toorkrag waarmee julle dié arme mense in julle mag probeer kry het soos ’n mens wilde voëltjies vang om hulle in ’n hok op te sluit,” sê die Here, die God van Esegiël. “Ek ruk die net waarmee julle hulle soos voëltjies probeer vang het, uit julle hande uit. En Ek maak die hokkie se deur wyd oop sodat die mense in vryheid kan uitvlieg. Ek vernietig al julle toordery en Ek red my mense uit julle mag. Hulle sal nie langer slagoffers van julle leuens wees nie. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Julle het die mense wat goeddoen, moedeloos gemaak met al die liegstories waarmee julle te koop geloop het, dat Ek hulle nie gaan seën nie. En dit was juis dié mense - dié wat goeddoen - wat Ek wou beskerm. Maar julle het die mense wat besig is met slegte dade aangemoedig om met hulle kwaad aan te gaan deur vir hulle te sê dat Ek hulle sal seën, selfs al hou hulle aan om slegte dinge te doen. Julle sal nie verder kan vertel van alles wat julle kwansuis in visioene sou gesien het nie. En julle sal nie kan aangaan met julle toordery nie. Want Ek sal my mense, dié mense wat goeddoen, uit julle mag red. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.” ’n Klomp van die leiers van my volk het toe by my kom kuier. Terwyl hulle by my sit, het die Here vir my gesê wat ek vir hulle moet sê: “Mens, hierdie mans het afgode wat hulle in hulle harte dien. Hulle hou aan verkeerde dinge vas wat hulle mislei om slegte dade te doen. En nou het hulle gekom om te hoor wat Ek vir hulle wil sê. Dink jy Ek wil nog met hulle praat? Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê soos volg oor hulle: Ek is die Here. Ek sal hierdie volk straf omdat hulle afgode in hulle harte aanbid en allerlei slegte dade doen, en dan nog ewe vroom kom vra wat die Here vir hulle te sê het. Hierdie is ’n klomp mense wat afgode dien. Ek slaan hulle met al my mag. “Daarom, gaan sê vir Israel die Here sê: Draai om! Draai weg van julle afgode af. Hou op om voor julle afgode te buig en hulle te aanbid, en aanbid My. En hou op met julle slegte dade. Ek is die Here, en Ek sal almal straf wat voor afgode buig en slegte dade doen. Of dit ’n vreemdeling of ’n Israeliet is wat My verwerp en voor afgode gaan buig, Ek sal hulle straf as hulle dan die vermetelheid het om te kom vra wat Ek vir hulle te sê het. Ek sal self teen sulke mense draai en ’n vreeslike voorbeeld van hulle maak. Ek sal hulle vernietig en hulle weggooi sodat hulle nie meer deel van my volk is nie. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. En as iemand vir hierdie mense sê hy praat namens My, en hy lieg, sal dit wees omdat Ek hulle wil straf. Ek sal al sulke mense uitroei en vernietig, en hulle sal nie deel van my volk wees nie. Die man wat sê hy praat namens My en die mense wat gaan vra het wat die Here oor hulle te sê het, sal almal saam gestraf word oor hulle slegte dade. Só sal my volk leer om nie van My af weg te loop agter ander gode aan nie. Hulle het hulleself vuil gesmeer met al hulle slegte dade. As dit ophou gebeur, sal jou mense my mense wees, en Ek sal hulle God wees,” sê die Here, Esegiël se God. Die Here het weer met my gepraat: “Mens, sê nou die mense in ’n land hou aan om slegte dade te doen en steur hulle nie aan My en aan wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Dan sal Ek so ’n klomp mense straf. Ek sal hulle slaan deur hulle kos weg te vat en hulle te laat honger ly. Ek sal mens en dier uit so ’n land uitroei, sonder om enige genade te betoon. Selfs as die vroomste mense op aarde, Noag en Daniël en Job, daar was, sou Ek net vir hulle gered het van die dood. Al die ander sou nog steeds vir hulle slegte dade gesterf het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Of sê nou maar Ek stuur gevaarlike wilde diere om daardie land binne te val en die land te verwoes en die mense uit te roei. Selfs as hierdie drie vroom mans in daardie land gebly het, verseker Ek jou dat dit die mense van daardie land niks sou help nie. Die mense sou nog steeds doodgemaak word. Die drie mans sou gered word omdat hulle reg voor die Here leef, maar die land en sy mense sou nog steeds uitgeroei word. “Of sê nou Ek het ’n groot weermag teen daardie land laat optrek, en Ek het vir die vreemde leër opdrag gegee om die land te verwoes en die inwoners van die land uit te roei. Selfs as daardie drie mans in daardie land gebly het,” sê die Here, die God van Esegiël, “sou hulle nie die mense gered het nie. Net hulle alleen sou gespaar word. “Of sê nou Ek stuur dodelike siektes teen daardie land omdat Ek woedend is oor die slegte dade wat hulle doen, en baie mense en diere gaan dood deur die siektes wat oral in die land uitbreek. Selfs as Noag, Daniël en Job in daardie land tussen die mense gebly het, verseker Ek jou sou hulle nie die mense gered het nie. Net daardie drie mans sal gered word omdat hulle die regte dade gedoen het.” Vandag sê die Here, die God van Esegiël vir hierdie volk: “Ek stuur al vier hierdie rampe teen Jerusalem en teen my volk. Hulle sal sien hoe Ek hulle oor hulle slegte dade straf met oorloë en hongersnood, en met gevaarlike wilde diere en dodelike siektes. Ek vernietig hierdie land se mense en diere sonder om een oor te slaan. Daar sal net ’n handjie vol mense wees wat die rampe gaan oorleef. En hulle sal weggevoer word om saam met julle hier as gevangenes in Babilonië, ’n ver en vreemde land, te kom woon. Dan sal julle met julle eie oë sien watter slegte dade daardie mense gedoen het. En dan sal julle verstaan hoekom Ek Jerusalem tot op die grond laat afbreek en sy inwoners dood laat maak het. Julle sal die paar mense ontmoet wat die rampe in Jerusalem oorleef. En julle sal sien watter slegte dade hulle doen. En dan sal julle saamstem dat Ek Israel nie sonder rede swaar gestraf het nie. Sy het verdien dat Ek haar so straf.” So sê die Here, Esegiël se God. Die Here het nog ’n slag met my gepraat en vir my gesê: “Mens, wat is beter aan ’n druiwestok as aan ’n boom wat in die bos groei? ’n Druiwestok kan nie eens so goed gebruik word om vuur te maak as ’n boom se hout nie. Kan jy die hout van ’n druiwestok gebruik om iets van te maak, soos ’n houtpen wat jy teen die muur inkap om iets aan op te hang? Nee, daardie hout is te swak. Dit sal breek. Jy kan met die hout van ’n druiwestok net vuur maak, maar dit brand ook baie vinnig uit. Die takke van ’n druiwestok is nutteloos voor jy dit in die vuur sit, en dit is nutteloos om ’n goeie vuur mee te maak.” Nou sê die Here, Esegiël se God, vir hierdie mense: “Die mense van Jerusalem is soos ’n druiwestok wat tussen die bome in die bos gegroei het. Hulle het geen nut vir My nie omdat hulle nie vrug dra nie. Daarom het Ek hulle eenkant neergegooi om mee vuur te maak. En Ek sal sorg dat as party van hulle ontsnap en nie deur een vuur verbrand word nie, hulle in die volgende vuur gegooi word. Wanneer dit gebeur, sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Ek sal julle land vernietig en verlate maak omdat my volk My behandel het presies net soos ’n getroude vrou wat by ander mans slaap,” sê die Here, die God van Esegiël. Die Here het weer met my gepraat en vir my gesê om met my volk te gaan praat. “Mens, gaan vertel vir Jerusalem watter verskriklike slegte dade sy inwoners gedoen het. Gaan sê vir hierdie stad wat Ek, die Here, die God van Esegiël, sê: Jy is niks anders as ’n heiden nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet. Die dag toe jy gebore is, was daar niemand wat vir jou gesorg het nie. Daar was niemand wat genoeg omgegee het om eers die naelstring af te sny waarmee jy aan jou ma vas was nie. Niemand het jou gewas of versorg nie. Jy het ook nie iets warms gehad waarmee hulle jou kon toedraai nie. Niemand het vir jou omgegee nie. Daar was niemand wat in jou belanggestel het nie. Niemand het jou jammer gekry of vir jou gesorg nie. Hulle het jou die dag toe jy gebore is, sommer in die veld gaan weggooi. Jy is alleen gelos om dood te gaan omdat niemand jou wou gehad het nie. “Maar toe het Ek verbygekom en jou daar sien lê. Jy het hulpeloos gelê en skop in jou eie bloed terwyl jy besig was om dood te gaan. Toe Ek jou daar sien lê, het Ek gesê: ‘Jy moet lewe!’ En Ek het jou opgetel en versorg. Soos ’n splinternuwe plant het jy weer begin lewe. Jy het opgegroei en soos ’n mooi en kosbare juweel geword. Soos ’n jongmeisie het jou borste begin vorm en jou hare het gegroei, alhoewel jy sonder klere was. “Toe het Ek eendag weer daar verbygegaan waar jy bly, en gesien dat jy nou oud genoeg is om te trou. En toe het Ek jou my klere gegee om aan te trek en met jou getrou. Ek het ’n ooreenkoms met jou aangegaan om jou huweliksmaat te wees. Jy het Myne geword,” sê die Here, Esegiël se God. “Toe het Ek jou gebad en die bloed van jou afgewas. Ek het jou vel met die heerlikste olies ingevryf. En Ek het duur klere gekoop sodat jy jou mooi kon aantrek. Jou klere was van die beste en duurste wat ’n mens kan koop. Ek het ook vir jou duur skoene gekoop. En Ek het vir jou pragtige juwele gekoop: hangertjies vir jou nek en armbande, en ander juwele waarmee jy jou mooi kon maak. Ek het selfs ’n goue kroon gekoop om op jou kop te sit, want jy was my koningin. So het Ek jou mooi gemaak met die goud en silwer wat Ek ten duurste vir jou gekoop het. Jou klere was die duurste en die mooiste wat ’n mens in die hande kan kry. Jy het die beste en lekkerste kos gekry. En jy was mooier as ooit tevore. Vir My was jy die kosbaarste wat Ek het. Jy het soos ’n koningin gelyk, en jy was ook vir My ’n koningin! Die hele wêreld het van jou geweet. Hulle het gepraat oor hoe mooi jy was. Ek het jou so pragtig gemaak met alles wat Ek vir jou gegee het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Maar toe het jy begin dink jy het My nie meer nodig nie. Jy het jou vertroue in jou eie skoonheid begin stel. En toe het jy jou liggaam vir elke man gegee wat verbygekom het. Jy het jou soos ’n slet vir elke man gegee wat daarvoor gevra het. En jy het al die mooi en kosbare goed wat Ek vir jou gegee het, gebruik om die afgode te dien en voor hulle te buig. Ja, reg voor jou afgode het jy die getroude vrou geword wat by ander mans slaap. Kan ’n mens dit glo? Hoe kan so iets ooit gebeur? Jy het die juwele en die goud en silwer wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir jou beeldjies van afgode te maak. En dan het jy voor hierdie beeldjies neergebuig en dit aanbid asof dit jou god is. Dit was so goed jy het by ander mans geslaap toe jy voor daardie afgode neergebuig en hulle aanbid het. En jy het die mooi klere wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om oor jou afgodsbeelde te gooi. Jy het die olie wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir die afgode offers te bring. En jy het wierook vir hulle gebrand om hulle te vereer, die einste wierook wat Ek vir jou gekoop het. Verbeel jou! Ek is jou God, en Ek gee vir jou die beste om te eet. En wat Ek vir jou gee, gaan offer jy toe vir afgode, dooie beelde wat niks vir jou kan doen nie. Ja, dít is die slegte dinge wat jy aangevang het,” sê die Here, Esegiël se God. “Ek was die pa van jou kinders. En dit is hierdie kinders, my seuns en my dogters, wat jy aan jou afgode geoffer het. Was dit nie erg genoeg dat jy by ander mans geslaap het nie? Moet jy nou ook nog my kinders doodmaak deur hulle aan jou afgode te offer? In al die jare dat jy hierdie afskuwelike slegte dade gedoen het, het jy nie eens een keer teruggedink aan die ou dae toe jy as baba hulpeloos en in jou eie bloed in die veld gelê het nie.” “Ek gaan jou vernietig, so seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël. “Al jou slegte dade was nie genoeg nie. Jy het ook nog ’n plek gebou vir jou afgode. En jy het in elke dorp altare gebou waar jy offers vir jou afgode gebring het. En op elke straathoek het jy jou lewe verwoes met al jou slegte dade. Jy het jou liggaam aangebied vir elke vreemdeling wat by jou verbygekom het. Jy het gesê: ‘Kom slaap by my!’ Jy het ook Egipte, waar jy ’n bediende was en waar Ek jou gaan verlos het, by jou minnaars gevoeg. Jy het My verskriklik kwaad gemaak met jou slegte dade om by al wat man is te slaap, al was jy met My getroud. Daarom het Ek jou met my vuis bygedam. Ek het jou land al hoe kleiner gemaak. Ek het jou aan jou vyande oorgegee. Selfs jou vyande, die Filistyne, het verstom gestaan oor al die slegte dade waaraan jy jou oorgegee het. Jy het jou liggaam op ’n skinkbord vir die Assiriërs gegee. Jy kon net nie genoeg minnaars kry by wie jy kon slaap nie. En as jy opstaan, het jy dadelik na nog iemand gesoek by wie jy kon slaap. Selfs Babilonië het jou minnaar geword. Jy het ook by hom gaan slaap. En ná dit alles was jy nog nie tevrede nie. “Hoe siek is jy nie in jou binneste nie, dat jy sulke dinge aanhou doen het! Jy was skaamteloos toe jy as getroude vrou so by enige man in die bed gespring het,” sê die Here, Esegiël se God. “Jy het op elke straathoek plekke gebou waar jy jou afgode kon neersit. En op elke plein in jou dorpe het jy altare gebou om vir jou afgode te offer. Jy het slegter as ’n slet opgetree. Jy was ’n straatvrou wat nie eens betaling gevra het om jou liggaam vir ander mans te gee nie. Jy was die slegte vrou wat met ander mans in die bed geklim het, maar niks met haar eie Man te doen wou hê nie. ’n Straatvrou word betaal as sy haar liggaam vir mans gee. Maar nie jy nie! Jy het die mans wat jy na jou toe gelok het, betaal om dit te doen. Jy het hulle met geskenke omgekoop sodat hulle by jou sal slaap. Waar ’n slet betaal word vir wat sy vir ander mans doen, het jy presies die teenoorgestelde gedoen. Niemand het jou betaal nie. Jy het hulle betaal. “Daarom, jou slegte vrou, hoor as die Here met jou praat.” Dit is hoe die Here, die God van Esegiël, oor jou dink: “Jy het jouself uitgetrek vir al wat man is. Jy het voor afskuwelike beelde van afgode neergeval en hulle aanbid. Jy het my kinders aan jou afgode geoffer. Daarom gaan Ek die volgende dinge doen: Ek maak al jou vriende bymekaar, al die mans vir wie jy so lief was. Ja, selfs die mans van wie jy nie gehou het nie en vir wie jy jou neus opgetrek het, maak Ek bymekaar. En dan sal Ek al jou klere voor hulle uittrek. Hulle sal jou sien, en jy sal van skaamte inmekaarkrimp. En dan sal Ek jou straf omdat jy my kinders doodgemaak het, en omdat jy by ander mans geslaap het. Jy sal vol bloed wees soos Ek jou in my woede gaan slaan. Daarna gaan Ek jou oorgee in die hande van die mans by wie jy so graag geslaap het. Hierdie mans is die nasies waar jy hulp gaan soek het. Hulle sal jou vernietig. Hulle sal al die plekke wat jy vir jou afgode gebou het, stukkend kap. En hulle sal die altare omgooi wat jy vir jou afgode gebou het. Hulle sal jou klere uittrek en jou pragtige juwele steel. Hulle sal jou kaal agterlaat, en jy sal skaam wees vir jouself. Hulle sal saamstaan en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde uitmekaarsny. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie ander vroue straf. So sal Ek sorg dat jy ophou om by ander mans te slaap. En jy sal ook nooit weer mans betaal om by jou te slaap nie.” “Eers wanneer Ek jou hard gestraf het, sal my woede teen jou begin bedaar. Dan sal Ek ophou om jaloers op jou te wees. Ek sal rustig raak en nie meer woedend wees oor al jou slegte dade nie. Maar voor dit gebeur, gaan Ek jou eers terugbetaal vir al jou slegte dade, want jy het vergeet wat Ek vir jou gedoen het toe jy nog jonk was. Jy het My woedend gemaak.” So sê die Here, Esegiël se God: “Asof jy nie genoeg slegte dade gepleeg het nie, het jy boonop by ander mans gaan slaap. “Die mense wat spreekwoorde uitdink, sal van jou sê: ‘Aardjie na haar vaartjie!’ Jou eie ma het haar man en kinders verruil vir ander mans. En nou het jy dieselfde aangevang. Jy maak presies nes jou susters, want hulle verruil ook hulle mans en kinders vir ander mans. Ja, dis waar. Jou ma was ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet. Jy tree soos ’n heiden op! “Jou ouer suster was Samaria wat met haar dogters daar in die noorde gebly het. En jou jonger suster was Sodom wat met haar kinders in die suide gebly het. Maar dit was nie genoeg dat jy dieselfde slegte dade as hulle gedoen het nie. Nee, in ’n kort tydjie het jy hulle oortref met die slegte dinge wat jy gedoen het! So seker as wat Ek leef, Sodom en haar dogters het nooit sulke slegte dinge gedoen soos jy en jou dogters nie,” so sê die Here, Esegiël se God. “Sodom se slegte dade was dat sy lui en trots was. Sy het haar ooreet terwyl daar arm mense was wat voor haar huis gesit het en niks gehad het om te eet nie. Sy was trots op haarself terwyl sy die afskuwelikste dinge aangevang het. Daarom het Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee. Gaan kyk self: daar is niks oor van hierdie stede nie. “Selfs Samaria, die ryk van Jerobeam, het nie helfte van die slegte dinge gedoen wat jy doen nie, Israel. Jy het baie slegter dinge gedoen as wat hulle ooit kon uitdink. Trouens, as jy Samaria en Sodom langs jou sit, lyk dit of hulle goeie mense was! Jy behoort jou te skaam. Jou slegte dade is afskuwelik! Jou susters lyk onskuldig as hulle langs jou gaan staan. “Eendag gaan Ek Sodom en Samaria en hulle dogters weer opbou. En Ek sal jou ook weer opbou. Daardie dag sal jy behoorlik skaam wees oor al die slegte dinge wat jy teen My gedoen het. Jou susters lyk goed teen jou. Ek sal jou susters, Sodom en Samaria en hulle dogters, red en hulle weer help. Dan sal Ek jou ook red en help. Jy het mos so gespog dat jy soveel beter is as Sodom. Jy was so vol van jouself. Maar nou wys Ek al jou afskuwelike dade vir die hele wêreld. En hulle almal sien op jou neer. Hulle loop en spot met jou, jou bure. Die Edomiete en die Filistyne lag as hulle na jou kyk. Dit is jou straf. Ek straf jou oor jou afskuwelike, slegte dade,” sê die Here. Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou vir jou: “Ek gee vir jou presies net wat jy verdien. Jy het jou belofte verbreek dat jy aan My getrou sal wees toe jy met My getrou het. Ek maak nie so nie. Ek bly getrou aan jou omdat Ek - toe jy nog jonk was - belowe het dat Ek by jou sal bly. Ek hou my beloftes wat Ek aan jou gemaak het, vir ewig. “Daarom gaan jy nog eendag skaam kry oor jou slegte dade. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Ek jou susters vat, die een ouer as jy en die een jonger as jy, en hulle jou dogters maak. Ek sal ook beloftes aan hulle maak wat Ek nie sal breek nie. En Ek sal weer my belofte aan jou maak. Jy sal dan weet en erken dat Ek die Here is. Dan sal jy aan jou slegte dade dink en baie skaam kry. Jy sal so skaam wees dat jy nie ’n woord sal uitkry nie. Dit sal gebeur op daardie dag as Ek jou vergewe vir al die slegte dinge wat jy aan My gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. Toe het die Here vir my gesê: “Mens, vertel vir jou mense hierdie storie. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Daar was eendag ’n groot arend met wye vlerke. Die arend het digte vere gehad wat verskillende kleure was. Hierdie arend het op ’n dag na ’n hoë berg in Israel gevlieg en die heel boonste tak van ’n sederboom afgebreek. Hy het hierdie takkie in sy bek gevat en dit na ’n ver land, Babilonië, geneem. Toe het hy die takkie daar geplant. “Hierna het hy nog ’n kleiner takkie van hierdie tak afgebreek en dit ook geplant. Daar was goeie, vrugbare grond langs ’n breë rivier. Die tak kon maklik groei en ’n groot boom word. Die klein takkie het kort voor lank ’n druiwestok geword wat laag op die grond groei. Die druiwestok se takke het boontoe gedraai, na die arend toe. Die druiwestok het ook sterk wortels gehad. Gou was daar sterk takke en baie blare. “Maar toe het ’n ander arend gekom, ook met wye vlerke en baie vere. Die druiwestok het toe sy wortels en takke na hierdie arend toe uitgesteek sodat hy vir die druiwestok water kon gee. Die druiwestok het so gemaak, al was hy by goeie water en in goeie grond geplant. Daar waar hy gestaan het, kon hy groei sodat hy ’n pragtige druiwestok kon word en baie blare en soet vrugte lewer. “Nou vra die Here, Esegiël se God: Moet Ek nou hierdie druiwestok los dat hy maar so aangaan? Nee! Ek sal hom uittrek, met wortels en al! Ek sal sy druiwetrosse afsny. Sy blare sal verdroog en afval. Ek sal die hele plant uittrek. En dit sal nie eens moeilik wees nie. Ek sal nie baie mense of ’n klomp soldate nodig hê om dit te doen nie. “En dan, wanneer die druiwestok op ’n ander plek geplant word, sal hy weer groei? Nee, hy sal heeltemal verdroog omdat Ek die warm oostewind uit die woestyn sal stuur om hom te vernietig. Dan sal die druiwestok in die goeie grond vrek waar dit vroeër so welig gegroei het.” Toe sê die Here ek moet die volgende boodskap vir my mense gee: “Sê vir die mense wat teen My in opstand is: Verstaan julle nie wat Ek vir julle probeer sê met hierdie storie nie? Kom Ek verduidelik vir julle wat Ek daarmee bedoel. Die koning van Babilonië het Jerusalem verower en toe haar koning en leiers as gevangenes weggeneem na sy land, ver van Jerusalem. Toe het die koning van Babilonië ’n ooreenkoms aangegaan met ’n lid van die koninklike familie wat lojaal aan hom was. Die koning het Israel se belangrikste leiers as gevangenes na sy land toe weggevat. Hy het dit gedoen om te keer dat Israel weer sterk word en in opstand kom teen die Babiloniese koning. Israel kon nou slegs ’n volk bly as hy die ooreenkoms met die Babiloniese koning hou en nie weer in opstand kom nie. “Maar toe gebeur dit. Hierdie man van die koninklike familie met wie die Babiloniese koning ’n ooreenkoms gesluit het, het teen die koning in opstand gekom. Hy het sy boodskappers Egipte toe gestuur en gevra dat Egipte hom moet help om in opstand te kom teen die Babiloniese koning. Hy het gevra dat die Egiptiese koning vir hom ’n groot klomp soldate en wapens stuur sodat hy die Babiloniese koning uit sy land kon verdryf. “Kan Israel sy ooreenkoms met die Babiloniese koning sommerso verbreek en dink dat hy skotvry daarvan gaan afkom? Nee! So seker as wat Ek is wie Ek sê Ek is,” sê die Here, Esegiël se God, “die koning van Israel sal as ’n gevangene in Babilonië doodgaan. Hy sal doodgaan in Babilonië, die land van die koning vir wie hy sy woord gegee het dat hy nie in opstand sal kom nie. Hy het sommerso sy woord verbreek en in opstand gekom. Die koning van Egipte en sy groot weermag sal niks kan doen om Israel te help nie. Die koning van Babilonië sal maar net weer teen Jerusalem optrek en die stad verslaan. En dan sal die koning van Babilonië baie mense doodmaak. Want die koning van Israel het belowe dat hy nie teen die koning van Babilonië in opstand sal kom nie, maar hy het sy belofte verbreek. Daarom sal hy nie ontsnap nie. Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek verseker jou, Ek sal die koning van Israel self straf omdat hy nie sy belofte gehou het nie. Hy het sy belofte in my teenwoordigheid gemaak, maar toe het hy dit verbreek. Ek sal my vangnet oor hom gooi en hom vang soos ’n wilde voëltjie gevang word. En dan sal Ek hom na Babilonië toe bring. Daar sal Ek hom straf omdat hy teen My in opstand gekom het. Dan sal al die beste soldate van Israel in die oorlog teen Babilonië doodgemaak word. En die mense wat in Jerusalem oorbly, sal oor die hele aardbol verstrooi word. As dit gebeur, sal julle weet en erken dat Ek die Here is en dat Ek vooruit voorspel het dat dit so gaan gebeur.” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek breek self die boonste takkie van die seder af, en dan gaan plant Ek hierdie takkie op Israel se hoogste berg. En hierdie takkie sal begin groei en ’n reuseboom word. En hierdie boom sal sy takke uitsprei en baie saad verskaf. Voëls van elke soort waaraan jy kan dink, sal hulle neste in hierdie boom se takke bou. Hulle sal wegkruip tussen sy takke as daar gevaar kom. En dan sal al die bome in die bos weet dat dit Ek, die Here, is wat die groot boom afkap en die klein boompie laat groei en grootword. Dit is Ek wat die groen boom laat verdroog en die dooie boom weer laat groei. Ek is die Here, en Ek het gepraat! Ek sal doen wat Ek gesê het.” Toe het die Here vir my ’n boodskap vir my volk gegee: “Hoekom sê die mense van Israel: Die ouers eet groen druiwe, en hulle kinders trek hulle gesigte op ’n plooi, so suur is die druiwe, oftewel: die ouers doen sonde, dan word die kinders daarvoor gestraf? Wel, so seker as wat julle leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle sal nooit weer só in Israel praat nie, want Ek besluit oor elke mens. En Ek straf elke mens soos hy verdien. Ek besluit oor ouers, en Ek besluit oor kinders. En dit is hoe Ek oor elkeen oordeel: die mens wat verkeerd doen, word gestraf daarvoor. Hy sal doodgemaak word. “Sê nou maar daar is iemand onder julle wat reg en goed optree. Hy het nie voor afgode neergebuig en hulle aanbid soos die ander mense van sy volk nie. En sê nou hy het nie by ’n ander man se vrou geslaap nie, en hy het net gedoen wat die Here vra. Hierdie man doen goed aan ander mense. Hy leen nie vir die arm mense nie. Nee, hy gee sommer vir hulle verniet wat hulle nodig het. Hy gee kos vir die mense wat honger is en klere vir mense wat koud kry. En as hy dalk geld vir iemand leen, vra hy nie rente nie. Hy doen nie verkeerde dade nie en is nie opstandig teen My nie. Hy doen net wat goed is. Hy doen alles wat Ek vra. Wel, so ’n mens sal lewe. Ek sal hom laat lewe, want hy doen wat goed en reg is,” sê die Here, Esegiël se God. “Maar sê nou hierdie selfde man het ’n seun. En hierdie seun word groot en dan besteel hy mense. Hy maak sommer iemand dood. En hy weier om goed te doen. Hierdie seun doen al die slegte dinge wat sy pa nooit sou droom om te doen nie. Hy aanbid afgode en slaap by ’n ander man se vrou. Hy steel van arm mense en weier om mense te help wat desperaat is. As mense hom geld skuld, vat hy sommer hulle meubels. Hy aanbid afgode en doen alles wat sleg is. Hy leen geld uit teen buitensporig hoë rente. Sal Ek so ’n slegte mens laat bly lewe? Nee! Hy moet doodgemaak word, want hy is skuldig. “Maar sê nou hierdie slegte seun het op sy beurt ook ’n seun. Hierdie seun sien watter slegte lewe sy pa lei en hy besluit om ’n ander koers in te slaan. Hierdie seun weier om voor afgode te buig. Hy slaap nie by ’n ander man se vrou nie. Hy besteel nie arm mense nie en hy behandel mense wat hom geld skuld, altyd goed. Hy gee kos vir mense wat honger is en klere vir mense wat koud kry. Hy help arm mense en leen nie sy geld teen buitensporig hoë rentekoerse aan ander uit nie. Hy doen alles wat Ek vir die mens gesê het om te doen. Hierdie seun sal nie vir sy pa se slegte dade gestraf word nie. Ek sal hom laat lewe. Maar die pa sal doodgemaak word vir die baie slegte dade wat hy gedoen het. Hy was wreed teenoor mense en hy het sy eie familielede bedrieg en besteel.” “Nou sê jy: ‘Maar ’n kind moet ook mos vir sy pa se slegte dade betaal! Hy moet net soos sy pa gestraf word!’ Nee! Nooit nie. As die kind reg doen, sal hy lewe. Hy doen wat Ek sê. Die een wat die slegte dade doen, sal self en alleen gestraf word daarvoor. Hy sal doodgemaak word. Daarvoor sal Ek sorg. ’n Kind word nie doodgemaak omdat sy pa slegte dinge gedoen het nie, en ’n pa en ma word nie gestraf omdat hulle kind slegte dinge gedoen het nie. Mense wat reg doen, sal die loon daarvoor kry. En mense wat sleg optree, sal gestraf word daarvoor. Maar as slegte mense die slegte ophou doen en omdraai en agter My begin aanloop, en hulle doen wat Ek die mens beveel het om te doen, sal hulle lewe. Ek sal hulle nie doodmaak nie. Ek sal vergeet van al die slegte dade wat hulle gedoen het. En hulle sal lewe omdat hulle begin het om goeie dade te doen. “Dink jy dat dit vir My lekker is om slegte mense dood te maak?” Die Here, die God van Esegiël, vra vir jou hierdie vraag. “Natuurlik hou Ek nie daarvan om mense vir hulle slegte dade te straf nie. Ek sal so graag wil sien dat hulle omdraai en agter My aanloop sodat hulle kan bly lewe. Maar as die mense wat reg doen, wegdraai en slegte dade begin doen en hulle leef soos die mense wat teen My in opstand is, moet Ek hulle laat lewe? Nee, natuurlik nie. Alles wat hulle voorheen gedoen het, al hulle goeie dade, sal vergeet word. En hulle sal doodgemaak word oor hulle slegte dade. “Maar nou sê julle: ‘Die Here tree nie reg op nie! Hy is nie regverdig teenoor mense nie!’ Wat? Luister ’n bietjie hier, mense van Israel. Is dit Ek wat nie reg optree nie? Is dit nie eerder julle wat nie reg optree nie? As mense wat reg optree en doen wat Ek sê, daarmee ophou en slegte dinge begin doen, sal hulle doodgemaak word vir hulle slegte dade. En as mense wat slegte dinge doen, daarmee ophou en begin doen wat Ek sê, sal hulle bly leef. Hulle sal lewe omdat hulle van die verkeerde pad omgedraai het om agter My aan te loop. Tog sê die mense van Israel aanhoudend: ‘Die Here tree nie reg op nie!’ Hoor hier, dis julle wat nie reg optree nie, mense van Israel. “Ek gaan elke mens oordeel volgens wat hy gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Draai daarom weg van die slegte pad af. Moenie dat julle slegte dade julle lewe kos nie. Hou op om teen My in opstand te wees. Vra My om vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe binneste te gee. Hoekom wil julle op die slegte pad aanhou totdat Ek julle doodmaak? Ek wil nie dat julle doodgemaak word nie, mense van Israel. Draai om en loop agter My aan, en lewe,” sê die Here, die God van Esegiël. “Leer hierdie lied sodat jy dit by die begrafnis van die konings van Israel kan sing. “Wat is jou ma? ’n Leeuwyfie tussen die leeus! Sy het tussen die jong leeus gaan lê. Daar het sy haar welpies grootgemaak. Een van haar welpies het sy gekies en grootgemaak. Hy het ’n jong leeumannetjie geword. Hy het geleer om sy prooi te vang en op te vreet. Toe het hy mense begin vang. Al die nasies het van hom gehoor. Toe het hulle gekom en ’n vanggat gegrawe en hom daarin gevang. Hulle het hom toe met sterk kettings vasgebind en weggevat Egipte toe. “Die leeuwyfie het dit gesien en besef dat al haar hoop weggevat is. Toe het sy nog een van haar welpies gevat en hom geleer hoe om ook ’n sterk leeumannetjie te word. Hierdie leeu het tussen die ander leeus rondgestap en later hulle leier geword. Hy het geleer hoe om sy prooi te vang en op te vreet. En toe het hy ook mense begin vang en opvreet. Hy het weduwees gevang en opgevreet en hele dorpe en stede verwoes. Later het die mense se plase leeg gelê en die oeste op die landerye het vergaan, want almal het gebewe so bang was hulle vir hierdie leeu as hy gebrul het. Toe het die mense van verskillende lande hom aangeval. Hulle het hom omsingel en hulle het hulle nette uitgegooi. Hulle het hom uiteindelik in ’n gat vasgekeer en gevang. Toe het hulle ysterhake deur hom gesteek en hom in ’n hok gesit en hulle het hom na die koning van Babilonië toe gebring. Niemand kon sy gebrul weer op die berge van Israel hoor nie. “Jou ma was soos ’n druiwestok wat langs ’n dam geplant is. Die druiwestok het groen blare gehad omdat daar genoeg water was. Die takke van die druiwestok het sterk geword, so sterk dat hulle ’n staf daaruit gemaak het waarmee die koning regeer het. Ná ’n ruk het die druiwestok hoog gegroei en bo al die ander druiwestokke uitgestaan. Hy het uitgestaan bokant die ander, so hoog was hy en so hoog het sy takke gegroei. Maar toe is die druiwestok in woede uitgeruk en op die grond neergegooi. Die warm woestynwind het die vrugte laat verdroog en sy takke afgeruk. Die stam van die druiwestok is deur vuur vernietig. Vandag groei die druiwestok in die woestyn waar die grond hard en droog is. ’n Vuur het van die takke af gekom en die vrug van die druiwestok vernietig. Nie een van die takke wat nou groei, is sterk genoeg om uitgesny te word en as ’n staf vir ’n koning te dien nie.” Dit is die lied wat jy by die begrafnis moet sing. Die begrafnis het nou net begin. Dit was die veertiende Augustus 591 v.C. in die sewende jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in ’n vreemde land was. Op daardie dag het party van my volk se leiers my kom vra of ek nie vir hulle ’n boodskap van die Here af het nie. Hulle het voor my gesit en gewag dat ek hulle moet antwoord. Toe het die Here met my gepraat en vir my gesê: “Mens, jy moet vir die leiers van Israel die volgende boodskap gee. Sê vir hulle: Julle waag dit om My te vra om julle te help! So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle niks sê en julle glad nie help nie. Dit is die woord van die Here, die God van Esegiël, vir julle. “Mens, kyk jy na hierdie klomp mense. Kyk na al die afskuwelike dinge wat hulle aanhou doen het. Vertel vir hulle dat hulle oupas en oumas, en hulle oupagrootjies en oumagrootjies ook aangehou het om slegte dinge te doen. Gaan sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê oor hulle: Ek het Israel gekies om my volk te wees. En Ek het Myself aan julle bekendgemaak toe julle nog gevangenes in Egipte was. Daar in Egipte het Ek belowe dat Ek julle God sal wees. Toe het Ek belowe dat Ek Israel en haar mense uit Egipte sal weglei. Ek het gesê Ek sal hulle na ’n land lei wat Ek vir hulle gemaak het. Ek het gesê dit sal ’n goeie land wees, ’n land wat oorloop van goeie dinge. Die land wat Ek vir hulle belowe het, is die beste land op aarde. Toe het Ek vir hulle gesê: Wat Ek van julle vra, is dat julle julle afgode moet laat staan. Moenie julleself verder verneder om Egipte se afgodsbeelde te dien nie, want Ek is die Here, jou God. “Maar hierdie klomp mense het teen My in opstand gekom. Hulle wou nie luister wat Ek vir hulle sê nie. Hulle wou nie ontslae raak van hulle afgode nie. Toe het Ek hulle gewaarsku dat Ek kwaad gaan word oor wat hulle doen en hulle gaan straf. Dit het al gebeur nog voor Ek Israel uit Egipte gelei het. Maar Ek het hulle nie gestraf nie. Ek het Myself aan hulle verbind, en Ek wou my groot Naam beskerm. Ek was bang die ander nasies spot met Israel as Ek hulle nie uit Egipte uitlei nie omdat Ek belowe het dat Ek dit sou doen.” “Daarom het Ek my volk uit Egipte, die land waar hulle gevangenes was, uitgelei. Ek het hulle die woestyn in geneem. Daar het Ek vir hulle gesê wat hulle moet doen as hulle wou bly lewe. Ja, elke mens wat doen wat Ek sê, sal aanhou lewe. Ek het toe ook vir hulle die sewende dag as ’n dag gegee waarop ’n mens moet rus. Die sewende dag was die dag waarop Ek hulle daaraan herinner het dat Ek, die Here, hulle eenkant gesit het om aan My te behoort en soos Ek te wees. Hulle was my spesiale volk. “Maar dit was nie lank nie, toe kom die mense van Israel in opstand teen My. Dit het gebeur toe hulle nog in die woestyn was. Hulle wou nie doen wat Ek gesê het nie, alhoewel hulle geweet het dat dit die enigste manier is om te bly lewe. Hulle het ook nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek beveel het nie. Daarom het Ek gedreig om hulle te straf omdat Ek baie kwaad was. Ek het planne begin maak om hulle van die aardbol af te vee, maar ook daar het Ek my woede ingehou om my Naam te beskerm. Anders sou die ander nasies lag en sê: ‘Die Here het sy volk uit Egipte gelei, maar Hy was nie sterk genoeg om vir hulle in die woestyn te sorg nie.’ “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge. Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid. Nogtans het Ek hulle weer jammer gekry en hulle nie daar in die woestyn vernietig nie. “Toe het Ek hulle kinders gewaarsku en gesê hulle moet oppas dat hulle nie dieselfde pad as hulle ouers loop nie. Ek het gesê hulle moet ook nie hulleself besoedel deur afgode te aanbid nie. Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel. Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is. “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het. Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei. Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het net gedoen wat hulle wou. Hulle het nie op die sewende dag gerus nie. En hulle het voor die afgode van hulle voorouers neergebuig. “Daarom het Ek toegelaat dat hulle gewoontes aanleer wat geen waarde het nie en wat hulle uiteindelik hulle lewe sal kos. Ek het hulle gelos dat hulle hulle lewe verwoes met die goeie geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het maar net toegekyk hoe hulle hulle oudste kinders aan afgode wy deur hulle as offers te verbrand. Ek het dit toegelaat sodat die dag kon kom waarop Ek hulle sou vernietig. Dan sou Ek vir hulle duidelik wys dat Ek, en Ek alleen, die Here is.” “Daarom moet jy vir die mense van Israel hard en duidelik sê wat Ek, die Here, Esegiël se God, sê: Julle oupas en oumas het aangehou om My te beledig en in die rug te steek. Kort nadat Ek hulle die pragtige land gegee het wat Ek hulle belowe het, het hulle offers en wierook oor die hele land vir hulle afskuwelike afgode verbrand. Hoe kwaad het Ek nie geword nie! Hulle het voor elke afgod gebuig. Hulle het olies wat lekker ruik en wierook gebring en hulle afgode daarmee aanbid. Ek het vir hulle gevra: Waarheen gaan julle? Hoekom loop julle na elke hoë plek? (Israel bring vandag nog sy afgodsoffers op sulke hoë plekke.) “Daarom moet jy vir die volk gaan sê die Here, die God van Esegiël, sê: Julle het julle lewe verwoes deur nikswerd afgode te aanbid. Julle oupas en oumas het dit ook gedoen. Julle was soos ’n getroude vrou wat by ander mans gaan slaap. Julle het My verruil vir afskuwelike afgode. Julle het geskenke vir julle afgode gebring. Julle het julle kinders as offers vir hulle verbrand. En nou kom sit julle ewe vroom en vra dat Esegiël My moet vra om julle te help! Moet Ek na julle luister, Israel? Die Here, Esegiël se God, wil by julle weet: Moet Ek My deur julle laat raadpleeg? So seker as wat Ek leef, Ek sal nie met julle praat nie. Ek het niks om vir julle te sê nie. “Julle sê: ‘Ons wil soos die ander nasies maak. Ons wil ook gode hê wat van hout en klip en metaal gemaak is.’ Maar julle moet dit weet: dit sal vir seker nie gebeur nie. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek sal julle met ’n ystervuis slaan. Ek sal julle in my woede bykom en platslaan. Met groot krag sal Ek julle tussen die ander nasies uitlei uit die land waar julle gevangenes is, ’n ver en vreemde land. En dan lei Ek julle weer die woestyn in, maar hierdie keer die woestyn vol nasies. En voor daardie nasies sal Ek my vonnis oor julle slegte dade uitspreek. Ek en julle sal mekaar in die oë kyk die dag as dit gebeur. Ek sal julle daar oordeel soos Ek julle oupagrootjies in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gelei het.” Dit is die Here, Esegiël se God, wat hier praat. “Ek sal julle tel om seker te maak die laaste een staan daar voor My. En dan sal Ek julle beoordeel volgens wat Ek in my ooreenkoms met julle vir julle gesê het julle moet doen. Dan sal Ek almal wat hulle nie aan My gesteur het nie, eenkant sit. Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar hulle nou gevangenes is. Hierdie mense sal nooit die land Israel ingaan nie. Die dag as dit gebeur, sal hulle weet dat Ek die Here is. “Wat julle betref, volk van Israel,” so sê die Here, die God van Esegiël, “gaan loop agter julle nikswerd afgode aan! Aanbid maar julle afgode! Maar moet dan nie omdraai en die volgende dag geskenke vir My wil bring omdat julle My nodig het nie. Ek sal nie toelaat dat julle My misbruik nie!” “Op die hoë berg waar my woning was,” sê die Here, Esegiël se God, “sal julle My weer kom dien. Daardie dag sal Ek julle toelaat om voor My te kom staan. Julle sal offers vir My bring en Ek sal dit aanvaar. Dit sal wees wanneer Ek julle ná julle gevangenskap in Babilonië weer terugneem na julle eie land toe. Dan sal Ek julle weer as my eie volk aanvaar. Terwyl al die nasies toekyk, sal Ek julle as my eie spesiale volk aanneem, daardie dag as Ek julle weer teruggebring het na julle eie land toe, sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Julle eie land is die pragtige land wat Ek belowe het om aan julle oupagrootjies en oumagrootjies te gee. “Dan sal julle terugdink aan al die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, en julle sal julleself daarvoor haat. Daardie dag sal Ek weer my groot Naam beskerm deur julle julle slegte dade te vergewe en julle skuld af te skryf, alhoewel julle diep in julle harte steeds sleg is. As julle dit sien, sal julle nie anders kan nie as om te weet en te erken dat Ek die Here is.” Die Here het verder vir my gesê: “Mens, kyk na die suidekant en sê die volgende woorde. Praat met die woestyn. Sê vir die suidelike woestyn die Here, die God van Esegiël, sê: Hoor die woord van die Here! Ek steek jou aan die brand, bos. Elke boom sal afgebrand word, al die groen en die droë bome. Die verskriklike vlamme van die brand sal nie geblus kan word nie. Alles sal vernietig word, van die suide tot in die noorde. Die hele wêreld sal besef dat Ek die vuur aan die brand gesteek het. Dit kan nie geblus word nie.” Toe sê ek: “Ag, Here my God, die mense sê al van my dat ek heeldag in raaisels praat. Hulle verstaan nie wat ek sê nie!” Die Here het toe weer met my gepraat. Hy het gesê: “Mens, kyk in die rigting van Jerusalem. En sê dan die volgende woorde oor Israel en al die plekke wat vir Israel se godsdiens opsy gesit is. Die Here sê: Ek is jou vyand, Israel. En Ek haal my wapens uit om jou mense mee dood te maak. Ek gaan die mense wat goeddoen en die mense wat sleg doen, almal doodmaak. Ja, Ek gaan nie eens die mense wat goeddoen, spaar nie. Ek gaan my wapens rig op almal in die land, van die een kant tot die ander kant van die land. Die hele wêreld sal weet en erken dat Ek die Here is. My wapens is in my hand. En Ek sal hulle nie bêre nie totdat Ek hulle klaar gebruik het. “Mens, sug swaar voor die mense. Maak asof jou hart gebreek is. Sug en kla van die môre tot die aand. As hulle dan vir jou vra hoekom jy dit doen, moet jy antwoord: Ek is ontsteld oor die verskriklike slegte nuus wat ek gehoor het. As hierdie nuus waar word, gaan julle almal net so sug. Dit sal lyk of julle harte ingee en gaan staan. Julle sal nie meer krag oorhê om eers op te staan nie. Julle knieë sal lam word en julle sal nie kan loop nie.” Die Here, die God van Esegiël, sê: “Dit kom gou! Dit gaan gebeur.” Toe sê die Here ook vir my: “Mens, praat met hierdie klomp mense en sê vir hulle: ’n Swaard word skerp gemaak vir julle! Die swaard word reggemaak om te kom vernietig. Hy sal so vinnig soos weerlig blits. Lag julle daaroor? Ander mense wat baie sterker as julle is, is deur hierdie swaard doodgemaak. Ja, die swaard word nou reeds skerp gemaak en blink gevryf. Dit word reggemaak vir die man wat die vonnis oor julle moet kom voltrek! “Mens, skree hard en huil. Huil kliphard! Want hierdie selfde swaard gaan my volk met al sy leiers kom doodmaak. Almal van hulle sal doodgemaak word. Ek sal my volk toets. Watter kans sal hulle hê as Ek hulle begin straf?” Dis die Here, Esegiël se God, wat dit vra. “Mens, sê vir hulle presies wat Ek vir jou sê. Maak ’n geraas sodat die volk vir jou kyk. En swaai dan die swaard twee, drie maal heen en weer. Wys só vir die volk hoe groot die verwoesting onder hulle gaan wees. Maak hulle bang. Laat hulle harte inmekaarkrimp van vrees, want die swaard wag by elke hek waar ’n mens sou kon uitvlug. Dit is blink gevryf om mense dood te maak. O, swaard, kap na die linkerkant. En na die regterkant. Kap waar jy wil en na wie jy wil. Ja, daardie dag sal Ek ook my hande klap, so bly sal Ek wees dat Ek my woede op julle kon afkoel oor al julle slegte dade. Ek, die Here, het met julle gepraat.” Die Here het met my gepraat. Hy het gesê: “Mens, teken ’n kaart van dié deel van die wêreld. Teken dan op jou kaart twee roetes waarlangs die koning van Babilonië kan reis om by jou land uit te kom. Hy gaan soontoe om jou volk te verwoes. Maak ’n padteken langs die pad net buite die stad Babel, waar die koning van Babilonië bly. Sit die padteken neer daar waar die pad in twee deel. Die een pad gaan Rabba toe, die hoofstad van die Ammoniete. En die ander pad gaan Juda toe, en Jerusalem toe, die hoofstad van jou volk. “Die koning van Babilonië staan nou juis by daardie vurk in die pad. Hy staan en wonder of hy Rabba of Jerusalem moet aanval. Nou gaan hy sy towenaars roep dat hulle vir hom kan kom sê wat hy moet doen. Hulle sal hulle dolosse gooi en diékant toe en daardie kant toe beduie. En dan beduie hulle vir die koning wat hulle dink hy moet doen: Gaan val Jerusalem aan! Die hele weermag maak nou hulle wapens gereed, want hulle gaan Jerusalem aanval. Die bevel is klaar gegee: Val die stad aan! Skree terwyl julle die mense van die stad doodmaak, soldate! Val die stadsmure aan totdat hulle inmekaarstort. Klim bo-oor! “Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout. Die koning van Babilonië kan hulle mos nie aanval nie! Hulle het dan vrede met hom gemaak! Hy misgis hom seker! “Maar dan sal die koning van Babilonië die mense van Jerusalem herinner hoe hulle teen hom in opstand gekom het. Hulle het nie hulle woord teenoor hom gehou nie. Hy sal Jerusalem aanval en al die inwoners van die stad gevange neem.” Die Here, die God van Esegiël, sê vir julle: “Julle is skuldig. Julle kry nie eens skaam oor julle slegte dade nie. Wat julle ook al doen om dit weg te steek, almal kan julle slegte dade sien. Moenie eens probeer om dit weg te steek nie. Alles wat julle doen, is sleg. Nou het die tyd gekom dat julle daarvoor gestraf gaan word. “Ek praat nou met die een wat oor Israel regeer. Jy het nie opgehou om sleg te doen nie. Vandag het die dag gekom dat Ek met jou afreken oor jou slegte dade. Haal jou blink kroon af.” Die Here, Esegiël se God, sê: “Ek keer jou om. Niks in hierdie land sal meer dieselfde wees nie. Die mense wat vandag verdruk word, maak Ek môre se heersers. En vandag se ryk en magtige mense maak Ek môre se sukkelaars. Vernietiging! Ek vernietig alles! Ek vee julle land van die kaart af! En Ek herstel julle nie weer nie, tot daar ’n koning kom wat die reg sal hê om julle te straf. Ek sal die stad vir hom gee om te vernietig.” “Mens, sê vir almal wat in die land van Ammon bly, Ek sê die volgende oor hulle gespot met my volk. Die Here, die God van Esegiël, dink só oor hulle: Ek het my wapens reggekry om julle aan te val. Ek het my wapens reggemaak om julle te vernietig. My wapens blink soos ’n weerligstraal. Julle towenaars en die mense wat sê hulle hoor wat julle gode sê, het vir julle gelieg. Hulle het gesê niks sal met julle volk gebeur nie. Maar nou het die dag aangebreek dat Ek al julle mense gaan straf wat aanhou sleg doen. Die slegte mense se dag het aangebreek! Sal Ek my wapens neersit voor Ek klaar afgereken het met julle? Nee, Ek sal julle een vir een vernietig in julle eie land. Ek is kwaad oor wat julle alles gedoen het. En Ek sal julle in my woede straf. Dit sal vir julle voel of Ek vuur oor julle blaas, so erg gaan my woede wees. Ek sal julle oorgee sodat wrede mense julle namens My straf. Hierdie wrede mense weet hoe om mense te vernietig. Julle sal soos petrol wees wat op die vuur gegooi word. Julle sal in julle eie land doodgemaak word. Julle hele volk sal uitgewis word. Agterna sal niemand eers meer kan onthou dat daar so ’n volk soos die Ammoniete was nie! Dit is wat Ek, die Here, vir julle te sê het, Ammoniete.” Die Here het nog ’n keer met my gepraat. “Mens, Ek wil hê jy moet besluit wat met Jerusalem gedoen moet word. Oordeel jy dan nou oor hierdie stad waar daar van die môre tot die aand moord gepleeg word. Vertel vir almal van die slegte dade wat sy doen. En sê vir die stad die Here, die God van Esegiël, sê van haar: Jy is ’n stad waar mense doodgemaak word. Jy het voor afgode neergebuig wat jy self gemaak het. Jy is vuil en sleg! Jy is skuldig aan al die moorde wat in jou gepleeg is en al die slegte dade wat voor afgode gedoen is. Nou het jou dag van vernietiging aangebreek! Jou dae is getel. Ek maak jou iets waaroor die hele wêreld sal lag en spot. Ja, mense wat jou ken en die ander wat jou nie ken nie sal oor jou lag. Want jy het so sleg opgetree dat die hele wêreld weet dat jou goeie naam daarmee heen is. “Elkeen in jou wat belangrik is, is daarop uit om moord te pleeg. Julle ignoreer julle ouers en het geen respek vir hulle oor nie. Julle mishandel die mense van ander lande wat by julle bly. Julle buit weeskinders en weduwees uit. Die dinge wat aan My behoort, steur jy jou nie aan nie. En jy doen op die sewende dag, die dag van rus, net wat jy wil. Jy steur jou nie aan wat Ek jou beveel het nie. Mense beledig mekaar en beskuldig mekaar vals. En hulle vals beskuldigings maak dat onskuldige mense tot die dood veroordeel word in die hof. Die mense wat in jou woon, Jerusalem, bring offers vir hulle afgode en hou aan om slegte dinge te doen, sonder ophou. Daar is mans wat by hulle pa se vroue slaap, getroude mans wat by ander vroue slaap terwyl Ek gesê het dit mag nie gebeur nie. In jou, Jerusalem, bly daar mans wat by hulle buurman se vrou slaap. Of hulle slaap by hulle skoondogters. Of hulle verkrag hulle eie susters. Daar is mense in jou wat vir geld moord pleeg. Hulle leen geld uit teen buitensporig hoë rentekoerse. Hulle steel en loop ander mense in. Dis ’n klomp mense wat nooit eers dink aan wat Ek vir die mens gesê het om te doen nie,” sê die Here, die God van Esegiël. “Ek is so verbaas oor wat julle doen dat Ek my hande saamslaan. Julle lieg en bedrieg. Julle maak links en regs dood. Sê ’n bietjie vir My: Sal jy ook so vol selfvertroue wees die dag as Ek jou gaan oordeel? Ek, die Here, het gepraat. En Ek sal doen wat Ek sê. “Ek gaan jou onder die nasies verstrooi. Jy sal in vreemde lande as gevangene woon. En daar sal Ek jou skoonmaak van al die slegte dinge wat jy gedoen het. Daardie dag, as die vreemde nasies so na jou kyk en oor jou lag en spot, sal jy weet en erken dat Ek die Here is.” Toe het die Here weer met my gepraat: “Mens, Israel het vir My soos die skuim geword wat agterbly as jy silwer smelt. Jy gooi die silwer af en verkoop dit, maar die skuim het geen nut nie. Jy gooi dit weg, want niemand kan iets daarmee doen nie. My volk is ’n nuttelose, waardelose mengsel van koper, tin, yster en lood.” So sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: “Julle is ’n waardelose en nuttelose klomp skuim. Daarom gaan Ek julle almal in Jerusalem in ’n smeltery bymekaargooi. Soos jy silwer, koper, yster, lood en tin saamgooi en die vuur aanblaas en warm maak om die metale te smelt, so gooi Ek julle bymekaar. Want Ek is kwaad oor al julle slegte dade. Ek smelt julle. Ek gooi julle bymekaar en my woede is die vuur waarmee Ek julle vernietig. Julle sal soos silwer smelt wat aan groot hitte blootgestel is. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is en dat Ek my woede op julle uitgestort het.” Die Here het toe weer met my gepraat: “Mens, sê vir die mense van Israel Ek sê vir hulle: Die dag as Ek julle straf, sal julle land geen reën meer kry nie. Dit sal so droog word dat julle land soos ’n woestyn sal lyk. “Die mense wat in julle land regeer, is soos leeus wat loop en brul en op soek is na iets om te vreet. Hulle vang onskuldige mense en vreet hulle op, want hulle wil hierdie mense se besittings steel. Hulle maak baie vroue in die land se mans dood. “Selfs die mense wat in my diens is, steur hulle nie aan wat Ek vir julle sê nie. Hulle maak net wat hulle wil. Die goed wat aan My behoort, smeer hulle vuil. Vir hulle is daar nie meer ’n verskil tussen wat aan die Here behoort en dit wat onrein is nie. En hulle leer ook nie vir gelowiges wat die verskil is tussen wat aan die Here behoort en wat vuil is nie. Hulle doen enigiets op die sewende dag, ’n dag wat eintlik aan My behoort. Mense het geen respek meer vir My nie. “Die mense wat in julle land regeer, is soos wolwe wat iets vang en dit verskeur. Hulle vang mense en skeur hulle stukkend om geld daaruit te maak. “Die mense wat vir die volk moes sê wat Ek beveel, vertel dat hulle dinge gesien het wat Ek nooit vir hulle gewys het nie. Hulle sê dinge wat Ek nie vir hulle gesê het nie. Hulle sê: ‘Wat ek sê, is wat die Here my God vir my gesê het om te sê!’ Maar die Here het nog nooit ’n enkele woord met hulle gepraat nie. “Die man op straat beroof die arm mense. Hy besteel die mens wat behoeftig is. Hy lieg en bedrieg links en regs. Hy behandel vreemdelinge so sleg asof daar geen wet in die land is wat mense uit vreemde lande beskerm nie. “Ek het gesoek na iemand in die stad wat goed sal doen, iemand wat ’n muur om die stad sal bou sodat die stad teen sy vyande beskerm kon word. So iemand moet goeddoen. Maar Ek het nie so iemand in die stad gekry nie. Niemand sal die stad kan beskerm nie. Daarom gaan Ek in my woede die stad vernietig. My woede sal soos ’n groot vuur wees wat alles verwoes. Hierdie stad se mense sal betaal vir al die slegte dade wat hulle gepleeg het. Hulle sal tot die laaste sent toe hulle skuld moet betaal,” sê die Here, Esegiël se God. Die Here het die volgende boodskap vir my gegee: “Mens, daar was eenkeer twee susters. Hulle het dieselfde ma gehad. Hierdie twee susters het prostitute geword. Hulle het hulle liggame in Egipte verkoop. Selfs toe hulle nog jongmeisies was, het hulle al mans toegelaat om hulle te liefkoos en aan hulle borste te vat. Die ouer sussie se naam was Ohola, en haar sussie was Oholiba. Ek het met albei van hulle getrou. Ek het seuns en dogters by hulle gehad. Ohola is eintlik Samaria, en Oholiba is Jerusalem. “Maar Ohola was nie tevrede om net met My getroud te wees nie. Sy wou graag ook by ander mans slaap. Sy het saam met die Assiriërs in die bed geklim. Die Assiriërs is almal aantreklike jongmanne. Party is kapteins en ander is generaals. Hulle lyk so mooi in hulle blou uniforms as hulle op hulle perde sit. Samaria het haarself vir die aantreklikste mans van Assirië gegee en by hulle geslaap. Sy het hulle afgode aanbid. Want toe sy uit Egipte weggetrek het, het sy nie haar slegte dade agtergelaat nie. Sy het nog nooit opgehou om sleg te doen nie. Sy is nog net so sleg as toe sy ’n jongmeisie in Egipte was. Die Egiptenaars het al by haar geslaap toe sy nog maar ’n jongmeisie was. Hulle het aan haar borste gevat en haar verlei om die vieslikste dinge te doen. Hulle kon nie genoeg van haar kry nie. Daarom het Ek haar oorgegee aan die mans van Assirië. Sy wou hulle mos graag hê. Toe het hulle haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. En hulle het haar kinders as gevangenes saamgevat. Al die mense in die wêreld het van haar gehoor. Sy was die vrou wat gekry het wat sy gesoek het. Ek het haar vir haar slegte dade gestraf.” “Oholiba het alles gesien wat met haar sussie gebeur het, maar sy het alles gedoen wat haar sussie gedoen het. Sy was selfs nog slegter. Sy het haar oorgegee aan die slegste dinge. Sy het saam met elke man in die bed gespring. Sy kon ook nie haar oë weghou van haar Assiriese bure nie. Sy het die aantreklike jongmanne op hulle sterk perde begeer, die kapteins en generaals in hulle mooi uniforms. Ek het gesien wat sy doen, hoe sy haar liggaam vernietig deur haar sondes, nes haar ouer sussie. “Maar dit was nie vir haar genoeg nie. Sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat op ’n muur geverf was. Dit was prentjies van Babiloniese soldate wat rooi uniforms aangehad het. Hulle het blink gordels en hoede gedra. Hulle was aangetrek soos Babiloniese soldate wat met perde oorlog maak. Toe sy hierdie prentjies sien, het sy net een begeerte gehad. Sy wou haar liggaam met hulle deel. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur en hierdie soldate genooi om na haar toe te kom. En hulle het gekom en by haar geslaap. Hulle het haar vuil gemaak. Maar hierna het sy nie meer van hulle gehou nie. Sy het hulle weggejaag. “Daarom het Ek moeg geraak vir albei sussies se slegte dade. Hulle het albei net vieslike dinge met ander mans aangevang. Maar dit het Jerusalem nie gepla nie. Sy het selfs nog slegter dade gedoen. Sy het onthou hoe sy as ’n jongmeisie in Egipte al rondgeslaap het. En sy het nie opgehou met al die slegte dinge wat sy gedoen het nie. Sy het nie teruggedeins van die slegste dinge nie. Oholiba, jy het bly terugverlang na jou slegte gedrag toe jy in Egipte ’n jongmeisie was en die mans jou geliefkoos en met jou borste gespeel het.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Oholiba, Ek gaan die mans by wie jy geslaap het, teen jou laat optrek. Hulle is die nasies wat jy weggejaag het omdat jy nie meer van hulle gehou het nie. Hulle sal van alle kante af op jou neersak: die Babiloniërs en die Galdeërs sal saam kom, en die Assiriërs ook. Hulle kapteins en generaals op hulle perde sal op jou toesak. Hulle sal uit die noorde kom met waens en perde en ’n leërmag met baie wapens, gereed om jou aan te val. Hulle sal jou met al hulle soldate omsingel. En Ek sal jou aan hulle oorgee sodat hulle met jou kan doen wat hulle wil. Ek was jaloers op jou, en Ek was kwaad oor wat jy gedoen het. Daarom gee Ek jou oor sodat jou vyande my straf oor jou bring. Hulle sal jou sleg behandel. Hulle sal jou neus en ore afsny soos ’n mens met opstandige vyande van jou doen. En hulle sal almal wat die oorlog oorleef, voor die voet doodmaak. Jou kinders sal as gevangenes weggeneem word na ’n vreemde land. Alles wat in jou oor is, sal tot op die grond afgebrand word. Hulle sal al jou juwele en mooi klere steel. Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor jou slegte dade. Jy sal nie meer saam met enige ander man in die bed kan spring nie, soos jy gemaak het vandat jy in Egipte gebly het. Jy sal nooit meer begeer om verkeerde dinge te doen nie, en jy sal ook nie meer wens jy was weer in Egipte nie.” Dit is wat Ek, die Here, Esegiël se God, oor jou sê: “Ek gee jou oor sodat jou vyande met jou kan maak wat hulle wil. Dis die mense op wie jy neergesien het. Hulle haat jou en sal met jou maak wat hulle wil. Hulle sal vat wat hulle wil hê, en dan sal hulle jou kaal en stukkend los. Die hele wêreld sal jou sien vir wat jy is: ’n slegte vrou wat by ander mans geslaap het. Jy het dit alles oor jouself gebring, want jy het jou vertroue op ander nasies gestel. Jy het jouself met hulle afgode besoedel. Omdat jy nes jou sussie gemaak het, sal Ek jou straf deur dieselfde dinge oor jou te bring wat haar ook getref het.” Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het. Jy sal soos ’n dronklap slinger soos Ek jou gaan slaan. Jy gaan net so swaarkry soos jou suster, Samaria. Jy sal die beker wat Ek vir jou gee, moet drink tot die laaste druppel toe. Dan sal jy die beker vat en hom stukkend slaan. En jy sal jou kop teen die muur kap omdat jy sulke dom dinge aangevang het. Dis Ek, die Here, Esegiël se God, wat hier praat. Jy het mos heeltemal van My vergeet. Jy het die rug vir My gedraai. En daarom,” sê die Here God, “sal jy die gevolge moet dra van jou slegte gedrag. Jy wou My mos verwerp en ignoreer!” Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het. Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand. Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk. Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid! “Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit. En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik. Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne. Dis toe dat Ek gesê het: As hierdie mans dan nou regtig by sulke vroue wil slaap wat hulleself aan slegte dade oorgegee het, laat hulle dan maar daar slaap! En dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het geslaap by Ohola en Oholiba, die twee prostitute wat geen skaamte ken nie. Die mense wat reg leef, sal besluit wat met hierdie twee susters, die twee stede, gedoen moet word. Hulle sal hulle sien vir wat hulle is: vroue wat by ander mans slaap en mense doodmaak. En hulle sal hulle straf met die straf wat hulle verdien.” So besluit die Here, die God van Esegiël, oor die twee susters: “Bring ’n hele leërmag teen hulle. Laat die soldate hulle vernietig en verwoes. Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en hulle doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand. So sal Ek ’n einde maak aan hierdie land se slegte dade en hulle aanbidding van afgode. As Ek hierdie land straf, sal dit ander waarsku sodat hulle nie doen wat julle gedoen het nie. Julle sal elke sent betaal van die skuld van julle slegte dade en julle aanbidding van afgode. Ja, Ek sal julle straf soos dit hoort. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here God is.” Op die vyftiende Januarie 588 v.C. het die Here met my gepraat. Dit was die negende jaar dat koning Jojagin as ’n gevangene in die vreemde land gesit het. Die Here het gesê: “Mens, skryf vandag se datum neer. Vandag het die koning van Babilonië sy aanval op Jerusalem begin. En wys dan vir hierdie opstandige klomp mense saam met jou iets. Sê vir hulle dis die Here, die God van Esegiël, wat dit vir hulle wil wys. Sit ’n pot met water op die vuur sodat die water begin kook. Gooi dan goeie kookvleis in die pot: vleis van die boud en die blad van ’n skaap. Gebruik net die beste skaapvleis. Maak ’n ordentlike vuur onder die pot. Kook die vleis, die bene saam met die vleis. “Sê dan vir hulle dis wat die Here, Esegiël se God, vir hulle hierdeur wil sê: Jerusalem gaan definitief verwoes word. Want dit is ’n stad vol mense wat ander doodmaak. Jerusalem is ’n pot vol korrupsie. Haal nou die vleis stuk vir stuk uit. Moenie uitkies watter stuk jy eerste vat nie. Almal kan duidelik sien hoe sleg die stad is. Die mense van die stad pleeg moord en was nie eens die bloed af nie. Die stad probeer nie eens haar slegte dade wegsteek nie. Daarom sal Ek haar bloed ook so laat spat dat enigeen dit sal kan sien. Ek gaan dit doen omdat Ek kwaad is oor wat julle gedoen het en wraak gaan neem daaroor.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Jerusalem gaan verwoes word, want dit is ’n stad vol mense wat ander doodmaak. Ek sal self die vuur pak wat onder die pot sal brand. Ja, gee vir My hout aan! Laat die vuur brand sodat die pot kan kook. Kook die vleis saam met baie speserye. Maak dan die pot leeg en los die bene daarin sodat dit in die pot vasbrand. Sit dan die leë pot op die vuur sodat dit kan skoon brand. Wat gebeur? Die pot word nie skoon nie. Hy bly vuil. Dis hopeloos om te dink die vuur sal hom skoon brand. Net so is dit met al julle slegte dade en julle aanbidding van die afgode. Ek het probeer om julle skoon te maak. Maar julle het hardkoppig geweier. Daarom sal julle vuil bly tot Ek my woede oor julle afgekoel en julle gestraf het. Dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Dis nou tyd dat julle gestraf word. En Ek sal julle nie jammer kry nie. Ek sal nie van gedagte verander nie. Julle moet maar julle volle straf dra. Julle sal gestraf word vir al die slegte dade wat julle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. Toe sê die Here vir my: “Mens, Ek gaan jou kosbaarste skat, jou vrou wat jou soveel vreugde gebring het, van jou af wegvat. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag nie vir een oomblik wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag geen traan stort nie. Jy mag sug, maar net saggies. Ook as julle haar begrawe, mag jy nie hard huil nie. Jy mag op geen manier verraai dat jou hart stukkend gebreek is deur jou vrou se dood nie. En as vriende jou wil troos of vir jou kos wil bring omdat jou vrou nie meer daar is om vir jou te sorg nie, mag jy dit nie aanvaar nie.” Ek het die volgende oggend vir my mense gesê wat die Here gesê het. En daardie aand is my vrou dood. Die volgende oggend het ek alles presies gedoen soos die Here vir my gesê het om te doen. Toe vra die mense vir my: “Hoekom maak jy so? Wat beteken dit wat jy doen? Wat probeer jy vir ons sê?” Toe sê ek vir hulle: “Die Here het vir my gesê om met julle te praat deur wat gebeur het en wat ek gedoen het. So sê die Here, die God van Esegiël, vir die volk Israel: Ek gaan toelaat dat my eie huis besoedel word. Daardie huis waar Ek gebly het en waarop julle so trots was. Julle kon daar gaan skuil. Julle seuns en julle dogters in Judea sal ook deur die swaard doodgemaak word. Daardie dag as dit gebeur, sal julle soos Esegiël maak. Julle sal nie openlik huil nie. En julle sal nie getroos word as julle vriende julle troos en vir julle kos bring nie. Julle sal nie kan wys dat julle hartseer is nie. Julle sal nie kan huil en treur nie. Want julle sal uitteer omdat Ek julle sal straf vir al die slegte dinge wat julle gedoen het. Julle sal huil waar niemand julle kan sien nie oor al die slegte dade wat julle gedoen het. Esegiël is ’n voorbeeld vir julle. Julle sal doen soos hy nou gedoen het. As daardie tyd aanbreek, sal julle weet en erken dat Ek die Here is.” Toe het die Here ook nog vir my gesê: “Mens, op dieselfde dag as Ek die stad Jerusalem verwoes waarop hulle so trots was en waar hulle geskuil het, sal Ek ook hulle seuns en dogters laat doodmaak. Hulle sal hulle kinders en hulle stad, hulle kosbaarste besittings op een dag verloor. Daardie dag sal iemand hier by jou in Babilonië aankom wat uit Jerusalem gevlug het. En hy sal jou vertel wat alles in Jerusalem gebeur het. En wanneer hy hier aankom, sal jy weer jou stem terugkry sodat jy met hom sal kan praat. Tot dan maak Ek jou stom. Ek maak jou ’n voorbeeld vir my volk, want hulle sal stomgeslaan wees oor wat Ek aan Jerusalem gaan doen. Daardie dag sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.” Die Here het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Mens, kyk na daardie kant toe waar die mense van Ammon woon. En sê vir daardie land en sy inwoners alles wat Ek vir jou sê. Sê vir die mense van Ammon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Julle het gelag en gespot toe my huis afgebreek is. En julle het Israel gespot toe sy deur haar vyande verwoes is. Julle het gelag toe party van die mense van Juda as gevangenes na ’n vreemde land toe weggevat is. Daarom beveel Ek nou dat die mense wat in die woestyne daar aan die oostekant bly julle land inneem. Hulle sal tussen julle dorpe en stede kom kamp opslaan. En hulle sal julle oeste afvat en julle skape en beeste steel. Daardie dag sal Ek Rabba, julle hoofstad, ’n stuk oop veld maak waar kamele kan wei. En die ander stede sal verwoes word sodat skape daar kan wei. Daardie dag sal julle erken dat Ek die Here is.” Die Here, Esegiël se God, sê: “Julle het hande geklap en gedans en van vreugde uitgeroep omdat my volk vernietig is. Daarom lig Ek my vuis teen julle op en slaan julle plat. Ek gee julle as buit vir ander nasies om mee te maak wat hulle wil. Julle sal nie meer ’n nasie wees nie. Ek vernietig julle heeltemal. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.” Toe sê die Here, die God van Esegiël: “Die mense van Moab het gesê Juda is maar net soos al die ander nasies. Daar is geen verskil tussen my volk en die heidene nie. Daarom sal Ek al die stede aan julle oostekant en op julle grens vernietig, want julle het gedink dat daardie stede julle sal beskerm. Ek gee julle land vir die inwoners van die woestyn aan die oostekant, nes Ek met Ammon gemaak het. Daarom sal die Ammoniete nie langer ’n nasie wees nie. En julle sal ook nie langer as ’n nasie bestaan nie, want Ek vernietig julle. Ek straf julle vir wat julle gedoen het. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.” So sê die Here, Esegiël se God: “Die mense van Edom het sleg opgetree toe hulle wraak geneem het op die mense van Juda, toe die Babiloniërs die mense van Juda verslaan het. “Daarom,” sê die Here, die God van Esegiël, “gryp Ek Edom aan sy keel. Ek slaan hom met die vuis. Ek roei sy mense uit, en sy vee. Ek stuur die swaard teen die land. Daar sal net een groot puinhoop oorbly, van die noorde van die land af tot in die suide. En Ek sal my volk, Israel, gebruik om dit te doen. Hulle sal wraak neem op die mense van Edom omdat Ek Edom straf vir sy slegte dade. Daardie dag sal Edom weet dat dit Ek is wat dit gedoen het. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat gepraat het.” Toe het die Here, die God van Esegiël, verder gepraat: “Die Filistyne het lelik met Juda gemaak. Hulle wou Israel vernietig omdat hulle al jare lank vir hulle kwaad is. Daarom gaan Ek, die Here, Esegiël se God, die Filistyne gryp en hulle met die vuis bykom. Ek gaan hulle heeltemal uitroei. Ja, Ek gaan hierdie mense wat langs die see woon, heeltemal verwoes. Ek gaan my wraak oor hulle uitstort en Ek gaan hulle straf soos hulle verdien. Wanneer Ek dit gedoen het, sal die Filistyne weet dat Ek die Here is.” Op die derde Februarie 585 v.C. het die Here weer met my gepraat. Ons was toe al twaalf jaar lank saam met ons koning, Jojagin, gevangenes in ’n vreemde land. Die Here het vir my gesê: “Die stad Tirus was so bly toe Jerusalem deur sy vyande verslaan is. Hy het gesê: ‘Hulle kry hulle verdiende loon! Jerusalem het skatryk geword toe hy handel gedryf het met die mense van Babilonië. Nou is hy nie meer daar nie. En nou gaan ek ryk word omdat ek my goed aan Babilonië kan verkoop. Ek sal ryk word, want Jerusalem is verwoes!’” Daarom sê die Here, die God van Esegiël, van jou: “Ek word jou vyand, stad van Tirus! En Ek sal baie nasies teen jou in opstand laat kom. Hulle sal oor jou spoel soos die golwe van die see. Hierdie nasies sal die mure van Tirus stukkend breek. Sy torings sal almal inmekaarval. Ek sal sy grond bymekaarskraap en weggooi sodat daar net ’n hoop klippe oorbly. Niemand sal meer op die eiland van Tirus woon nie. Die vissermanne sal hulle visnette uitgooi om droog te word daar waar die besige stad nou staan. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat praat. Tirus sal die slagoffer wees, en die wilde dier wat hom agtervolg, is die nasies. Ek sal al Tirus se dorpe en stede verwoes in die oorlog wat kom. Dan sal hulle erken dat Ek die Here is.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek stuur koning Nebukadnesar van Babilonië om teen Tirus te baklei. Hy is die koning wat oor almal in die noorde regeer. Hy gaan hier opdaag met sy perde en ruiters, met baie soldate en wapens. Hy sal eerste die groot dorpe van Tirus vernietig. Dan sal hy die hoofstad van die land aanval. Hy sal ’n wal teen die stad se mure oprig. Dan sal hy jou muur vernietig en oor die stad stroom met al sy soldate. Hy sal al jou mure afbreek en jou torings vernietig. Hy sal met duisende perde teen jou optrek. As al die perde deur jou stad jaag, sal jy vaal word soos hulle stof opskop. Die gedreun van die baie perde sal jou mure laat bewe. Hulle sal deur jou stukkende hekke ry en óór jou stad stroom. Die soldate en hulle perde sal jou strate vertrap. En hulle sal jou mense voor die voet doodmaak. Die sterkste pilare waarop jou huise en geboue rus, sal hulle alles omgooi. “Hulle sal vat net wat hulle wil hê. Dan sal hulle al jou mure omgooi. Al die mooi huise sal hulle afbreek. Hulle sal die stene en die hout waarvan jou huise gebou is, in die see gooi. Ek sal daardie dag die musiek stop in jou stede sodat niemand meer kan sing nie. Niemand sal meer bly wees nie. Niemand sal in jou stad op ’n musiekinstrument speel nie omdat niemand opgewek sal wees nie. Ek maak jou eiland ’n kaal rotsplaat waarop niks kan groei nie. Die vissermanne sal hulle nette oor jou uitgooi om in die son droog te word. En jy sal nooit herbou word nie, want Ek, die Here, sê so.” Dit is die woord van die Here, Esegiël se God. Dis wat die Here, die God van Esegiël, verder oor Tirus sê: “Al die mense wat op die eilande langs die kuslyn naby jou bly, sal bewe as hulle hoor hoe Ek jou vernietig het, Tirus. Hulle sal hoor hoe jy in jou nood roep om hulp. Hulle sal hoor hoe die mense wat gewond is, hardop huil. Dan sal al die regeerders en konings van hierdie dorpe en stede opstaan. En hulle sal al die pragtige, duur klere wat hulle aanhet, uittrek. Vol vrees sal hulle op die grond neerval, so bang sal hulle wees oor wat gebeur het en wat hulle alles gesien het. Hulle sal bewe van vrees, bewe oor wat Ek aan jou gedoen het, Tirus. “Daardie dag sal hierdie mense ’n begrafnislied sing. Hulle sal sê: ‘Jy was so ’n bekende stad op die mooi eiland van Tirus. Jy het oor die see regeer, so sterk was jy. En nou is jy verwoes! Daar het niks van jou oorgebly nie. Eens op ’n tyd het jou mense met hulle bote oor die hele wêreld gevaar. En hulle was so sterk en ryk dat almal vir hulle bang was. Nou bewe al die mense wat langs die see bly omdat jy verwoes is. Die mense wat op die eilande bly, is wit van die skrik oor wat met jou gebeur het.’” Die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek maak van Tirus ’n plek waar geen mens ooit weer sal kan bly nie. Jy sal wegsink terwyl die golwe van jou vyande oor jou spoel. Hulle sal jou aanval en jy sal verwoes word. Ek gooi jou in jou graf. Jy sal daar wees saam met al die ander wat voor jou dood is. Waar jou stad was, sal net ’n ruïne wees, sonder enige vorm van lewe daarin. Jou stad sal onder die grond begrawe wees. Jy sal nooit weer die son sien opkom nie en niemand sal meer respek vir jou hê nie. Ek maak jou ’n voorbeeld om ander af te skrik sodat hulle nie dieselfde dom dinge as jy sal doen nie. Dis klaar met jou! Hulle sal jou nooit weer kry as Ek met jou klaar is nie,” sê die Here, die God van Esegiël. Toe het die Here vir my gesê: “Mens, jy moet die volgende lied sing asof jy die begrafnis van Tirus bywoon. Tirus is die stad wat aan die kus lê. Al die volke wat iets wil verkoop, moet hulle handelsware deur Tirus neem. Jy het ook jou eie ware aan die mense van hierdie eiland gaan verkoop. Jy moet nou vir Tirus sê die Here, Esegiël se God, dink só oor hom: Jy het gedink jy is baie goed en baie ryk, Tirus. Jy het gedink jou grense strek selfs oor die see. Jy het jouself gesien soos ’n groot, sterk skip wat op die see vaar. Jy was soos ’n groot skip wat van die beste hout gebou was. Hulle het ’n sederboom van Libanon, my berg, gebruik om vir jou ’n mas te maak. En hulle het vir jou roeispane gemaak van die eikebome wat by Basan groei. Hulle het jou dek van sipreshout gebou wat van die kus van Siprus af kom. En kan jy dit glo? Hulle het duur ivoor gebruik om jou dek te versier! Hulle het die beste materiaal gebruik om seile van te maak. Mense het hierdie skip uitgeken aan sy seile wat van baie kleure geweef was. Hulle het jou seile pers en rooi gemaak sodat almal jou van ver af kon raaksien. “Die roeiers op jou skip het van Sidon en Arwad gekom. Die ander mense wat op die skip gewerk het, het van Tirus self gekom. Die beste ambagsmanne het op die skip gewerk om enige lekplek dadelik toe te stop. Al die skepe wat op die see gevaar het, het die een of ander tyd ’n draai by Tirus gemaak. Jy was die middelpunt van die aarde se besigheid. En mense oor die hele wêreld het in jou weermag gedien. Hulle het gekom van lande so ver as Paras, Lud en Put. As hulle hulle wapens teen die mure van die stad opgehang het, het almal gesê: ‘Dis ’n groot en sterk stad dié!’ Die soldate wat reg gestaan het om die stad te beskerm het van so ver as Arwad gekom. En manne uit Gammad het diens gedoen in die torings van waar die stad veilig gehou is. Hierdie manne het ook hulle wapens teen jou mure opgehang. En was jy nie ’n veilige stad nie! “Die groot en belangrike stad Tarsis was die agent wat vir jou gaan handel dryf het, want jy het soveel goed gehad om te verkoop. Hulle het jou ware verruil vir silwer en yster, tin en lood. Ook Griekeland, Tubal en Mesek het met jou besigheid kom doen. Hulle het slawe en kopergoed gebring wat hulle verruil het vir die handelsware wat hulle by jou gekoop het. Die mense van Bet-Togarma het perde en muile gebring en dit geruil om jou goed in die hande te kon kry. Die mense van Dedan het ook gekom om met jou besigheid te doen. Die mense op die eilande het die goed wat jy gemaak het, vir jou verkoop. Hulle het jou betaal met olifantstande en baie duur hout. Die mense van Aram het ook besigheid met jou kom doen, want jy het baie dinge gemaak. Hulle het jou goed kom koop met hulle materiaal wat van verskillende kleure was en die duur edelstene wat hulle uit hulle myne gehaal het. Ook Juda en Israel het met jou handel gedryf. Hulle het jou ware verruil vir hulle koring, vir vye en heuning, olyfolie en balsemgom. Damaskus was ook ’n agent wat vir jou besigheid gedoen het. Jy het jou produkte verkoop vir wol en wyn. Die mense van Dan en tot so ver as Griekeland het hulle yster, kaneel en medisyne gebring en daarmee betaal vir wat jy verkoop het. Die mense van Dedan het weer met duur komberse betaal wat jy onder jou perdesale gesit het. Die Arabiere en die regeerders van Dedan het jou betaal met lammers en skape, asook bokramme. En die mense van Skeba en Rama het betaal met gom en edelstene en goud. Die mense van Haran en Eden, Assirië en Kilmad het ook met jou besigheid gedoen. Hulle het weer mooi klere en materiaal en tou gebruik om jou te betaal vir die goed wat jy gemaak het. Skepe wat van Tarsis gekom het, het jou ware opgelaai en aan ander lande gaan verkoop. En so het al jou besigheid jou skatryk gemaak. Jy het ’n ryk en magtige nasie geword. Jou skure was vol duur goed. “Maar let nou mooi op! Die mense wat roeiers op jou skip is, het reguit in ’n orkaan ingeroei. Die wind het jou skip op die diepsee verpletter. Daardie dag het alles vergaan. Van al jou rykdom het niks oorgebly nie. Jou soldate en die mense wat op jou skepe werk, is op dieselfde dag uitgewis. Selfs die mense wat jou goed op hulle skepe gehad het om dit te gaan verkoop, is in daardie orkaan dood. Al jou mense is verwoes. Jy het op see vergaan. Alles is verlore! “Die mense wat in die lande rondom jou bly, het gebewe toe hulle hoor hoe jou mense gil en skreeu die dag toe Ek jou verwoes het. Die mense wat op jou skepe geroei het, het oorboord gespring, so groot het hulle geskrik. Die soldate en die matrose het op die kaai gaan staan. Hulle staan daar en huil. Hulle treur omdat hulle hartseer is omdat Ek jou vernietig het. Hulle maak hulle reg vir jou begrafnis. Hulle trek begrafnisklere aan. Op pad na jou graf toe sing hulle ’n lied. Hulle sê: ‘Was daar al ooit so ’n wonderlike stad soos Tirus! En nou lê hy op die bodem van die see. Hy het vergaan.’ “Die goed waarmee jy besigheid gedoen het, het na al die lande rondom jou gegaan. Jy het konings oor die hele wêreld ryk gemaak met al die goed waarmee jy besigheid gedoen het. “En wat is jy nou? ’n Skip wat gesink het. Jy lê op die bodem van die see. Jy is verwoes! Al die goed waarmee jy besigheid gedoen het en al jou mense het verdwyn. Daar is niks oor nie. “Almal wat langs die kus rondom jou woon, staan verstom oor wat met jou gebeur het. Die konings kan hulle oë nie glo nie. Hulle kyk, maar kan nie glo wat hulle sien nie. “Die mense van al die nasies wat met jou besigheid gedoen het, skud die kop oor wat met jou gebeur het. Want jou einde was verskriklik. Daar is niks van jou oor nie!” Die Here het vir my gesê: “Mens, sê vir die regeerder wat oor Tirus heers: Die Here, die God van Esegiël, sê vir jou: Jy was so trots op wie jy is en wat jy alles besit. Jy het so groot geword dat jy selfs begin sê het: ‘Ek is ’n god! Ek sit op ’n troon op hierdie eiland soos ’n god!’ “Maar jy het vergeet dat jy maar net ’n mens is wat sal doodgaan op sy tyd. Selfs al dink jy jy is ’n god, sal jy op die harde manier uitvind jy is nie. Jy dink jy is slimmer as die profeet Daniël wat drome vir konings kon uitlê. Jy dink jy weet alles. Jy ken alle geheime. Ja, jy het baie geld en besittings bymekaargemaak. Dis waar. Jy kan goed besigheid doen. Jy het baie silwer en goud. En jy is slim. Ja, jou slimheid het jou ryk gemaak. Maar toe word jy trots omdat jy so skatryk is. “Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “omdat jy gedink het jy is slimmer as Ek, bring Ek ’n klomp vyande om teen jou te veg. Ek roep al die nasies nader om jou vyand te word. Hulle sal skielik op jou toesak en jou met hulle oorlogswapens op jou knieë bring. Jy sal onkant betrap word, al is jy so slim en ryk! En hierdie vyande van jou sal jou doodmaak, sonder om genade te bewys. Jy sal daar in jou huis op die eiland doodgemaak word. Jy bly mos in die middel van die see; daarom het jy gedink jy is veilig. Jy sal van jou baie wonde doodgaan. En sal jy dan nog kan spog dat jy ’n god is? Sal jy vir jou vyande wat jou doodmaak, vertel dat hulle nie met ’n gewone mens te doen het nie, maar met ’n god? Hulle sal sien wat jy is: ’n gewone mens wat doodgaan soos enige ander mens. Ja, jy sal doodgaan soos iemand wat weggedryf is uit die geselskap van mense. Vreemde mense wat jy nie ken nie, sal jou doodmaak. Dit is my woord oor jou. Ek is die Here, die God van Esegiël.” Toe praat die Here verder met my. Hy sê: “Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi. Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is. Ek het jou daardie dag aangestel om die leier van my boodskappers in die hemel te wees. Jy moes hulle saam met My oppas. Jy kon enige tyd na My toe kom, niemand het jou gekeer nie. Ja, jy het rondgeloop waar Ek was, en waar alles skoon was. “Jy het niks ooit verkeerd gedoen nie. Jy het reg gelewe en goedgedoen, tot daardie dag dat jy die slegte dinge begin doen het. Jy het die slegte begin doen omdat jy so ryk was. Jy het groot mag oor mense gehad. Toe het jy verkeerde dinge begin doen. Daarom het Ek jou weggejaag sodat jy nooit weer voor My mag kom nie. Jy was die magtige boodskapper wat my huis in die hemel moes oppas, maar Ek het jou weggejaag. Jy sal nie weer kom waar Ek is nie omdat dit daar te skoon vir jou is. “Jy het so trots op jouself geword omdat jy mooi en slim en ryk was. En toe het jy skelm geword sodat jy nog meer geld in die hande kon kry. Jy het almal om jou belieg en bedrieg. Daarom het Ek jou uit die hemel gegooi. Ek het jou op die aarde neergegooi. Die heersers en belangrike mense op die aarde het gekyk hoe jy verneder word. Jy het alles rondom jou vuil gesmeer. Jy het almal met wie jy besigheid gedoen het, bedrieg. Daarom het Ek ’n vuur binne-in jou aan die brand gesteek. En hierdie vuur sal jou verteer. Ek sal jou tot as verbrand. En al die mense van die aarde sal kyk hoe Ek dit doen. Al die mense wat jou op aarde geken het, sal skrik en bewe as hulle sien wat met jou gebeur. Ek maak jou ’n voorbeeld sodat hulle nie sal doen wat jy gedoen het nie. Ek maak ’n verskriklike einde aan jou. Jy sal nie meer bestaan nie!” Die Here het verder vir my gesê: “Mens, kyk in die rigting van Sidon. En sê vir hierdie stad wat Ek vir jou sê. Sê vir die mense van Sidon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Ek is jou vyand, Sidon! En Ek gaan Myself bekendmaak deur wat met jou gaan gebeur. Ek gaan jou voor die hof daag en jou skuldig bevind. Dan gaan Ek vir jou wys wie Ek is, die dag as Ek jou straf. Elkeen wat sien wat gebeur, sal dan besef en weet dat Ek die Here is. Ek stuur ’n plaag teen jou. Jy sal doodgaan en jou bloed sal op jou strate lê. Jy sal van alle kante aangeval word. Jou mense sal dood binne-in die stad rondlê. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is. Jy was Israel se buurman, maar jy was ook nog altyd ’n vyand van hom. Nou sal dit nie meer so wees nie. Jy sal nie meer vir Israel verpes nie. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is. “Want,” so sê die Here, die God van Esegiël, “daardie dag sal Israel weer in sy eie land bly. Dit is die land wat Ek vir Jakob gegee het. Hy het My gedien as God. Ek sal my volk bymekaarmaak waar hulle as gevangenes in ’n vreemde land bly. Ek het hulle daarheen laat gaan omdat Ek hulle gestraf het. Die dag as dit gebeur, sal al hierdie nasies sien wie Ek is as Ek my volk terugbring. Dan sal Israel veilig in hulle eie land bly. En hulle sal huise bou en wingerde plant. Dan sal Ek al die nasies wat Israel se bure is, straf. Want Israel se bure het hom sleg behandel. Daardie dag sal Israel weet dat Ek die Here hulle God is.” Op die sewende Januarie 587 v.C. het die Here met my gepraat. Dit was die tiende jaar dat koning Jojagin as gevangene in ’n vreemde land gesit het. Die Here het vir my gesê: “Mens, kyk in die rigting van Egipte. Sê vir die regeerder van Egipte, die farao, en die mense van die land van Egipte: Die Here, Esegiël se God, dink só oor julle: Ek het jou vyand geword. Koning van Egipte, jy is soos ’n gevaarlike krokodil wat in die rivier van Egipte skuil. Jy lê daar en sê: ‘Die Nyl is my rivier. Niemand anders mag hier kom nie, want ek het dit spesiaal net vir myself gemaak!’ “Luister! Ek gaan jou met ’n hoek vang. Dan gaan Ek jou uitsleep terwyl die visse in jou skubbe vashaak, so vinnig sal dit gebeur. Ek gooi jou en al jou visse dan in die woestyn neer sodat julle daar kan doodgaan. Niemand sal eers moeite doen om jou te begrawe nie. Die wilde diere en die voëls sal aan jou vreet terwyl jy in die oop veld lê. “Daardie dag sal al die mense wat in Egipte bly, ontdek dat Ek die Here is. Ek doen hierdie goed aan jou, want toe Israel jou hulp gevra het, het jy geweier om te help. Toe hy op jou gesteun het, het jy soos ’n riet in sy hand gebreek en hom beseer. Toe hy sy volle gewig op jou sit, het jy onder hom padgegee. Hy het sy rug seergemaak, so hard het hy geval. “Daarom,” sê die Here, die God van Esegiël, “stuur Ek nou ’n hele leërmag soldate teen jou, Egipte. Ek laat hulle jou en al die diere in jou vernietig. Die land van Egipte sal een groot ruïne word. Niks en niemand sal daar bly nie. Ek doen dit sodat die mense wat in Egipte bly, sal besef dat Ek die Here is. “Jy het gesê: ‘Die Nyl is myne. Ek het hom gemaak!’ Daarom word Ek jou vyand, en vernietig Ek ook jou rivier. Ek sal die hele land van Egipte verwoes, van die noorde tot die suide toe. Ek sal tot diep in Afrika alles verwoes, so kwaad is Ek vir jou, Egipte. Vir ’n baie lang tyd sal niemand eers deur hierdie land trek nie. Geen mens of dier sal hier kom nie omdat hier niks is nie. Ek maak van Egipte ’n woestyn waarin niks groei en niemand bly nie. En Ek omring Egipte met lande wat net so ’n woestyn sonder inwoners geword het. Die stede van Egipte sal vir ’n lang tyd sonder inwoners wees. En die lande rondom Egipte sal ook sonder inwoners wees. Ek verstrooi die mense van Egipte. Hulle sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word. “Maar,” sê die Here, die God van Esegiël, verder, “aan die einde van die lang tyd wat Ek vasgestel het, bring Ek die mense van Egipte weer terug na hulle eie land toe. Ek gaan haal hulle uit onder die nasies waar hulle as gevangenes gebly het. Dan maak Ek Egipte weer ryk. Daardie dag bring Ek die mense van Egipte terug van waar Ek hulle verstrooi het. Maar Egipte sal dan vir altyd ’n klein volk bly. Hy sal nooit weer so belangrik word soos hy was nie. Hy sal nooit weer oor die lande rondom hom heers nie. “Israel sal nooit weer dink dat Egipte hom kan help nie. As Israel sien hoe Egipte vernietig is, sal dit Israel herinner hoe verkeerd hy was toe hy op Egipte vertrou het om hom te help en nie sy hoop op sy Here gestel het nie. Daardie dag sal Israel weet dat Ek, en Ek alleen, die Here God is.” Op die ses en twintigste April 571 v.C. het die Here weer met my oor Egipte gepraat. Dit was toe koning Jojagin al 27 jaar ’n gevangene in ’n vreemde land was. Die Here het vir my oor Egipte gesê: “Mens, die weermag van koning Nebukadnesar van Babilonië het vreeslik hard baklei in hulle oorlog teen Tirus. Die soldate se koppe is kaal geskaaf en hulle skouers rou geskuur, so hard het hulle baklei om Tirus met die grond plat te vee. En tog het koning Nebukadnesar en sy soldate niks gekry wat hulle as buit kon wegvat nie, ten spyte van al hulle harde werk. Daarom gaan Ek, die Here, die God van Esegiël, Egipte vir koning Nebukadnesar van Babilonië gee. Hy sal met sy soldate kom en die land oorwin. En dan sal hy Egipte se rykdom wegdra. Koning Nebukadnesar sal alles waarop hy sy hande kan lê, vir homself vat. Daarmee sal hy sy soldate se loon betaal. Ja, Ek gee Egipte vir hom om vir hom dankie te sê, want hy het Tirus vir My verwoes. Ek het gesê hy moet dit doen. Ek is die Here, Esegiël se God. “Daar gaan ’n dag kom dat Ek Israel in ere herstel. Hy sal weer so sterk en beroemd wees soos in die dae van koning Dawid. Wanneer dit gebeur, sal my volk uiteindelik vir My respek kry. Dan sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.” Die Here het toe weer met my gepraat: “Mens, sê wat Ek nou vir jou sê, want dit is die Here, die God van Esegiël, wat praat. Sê: Huil! Want die dag wat kom, gaan verskriklik wees! Dit is die dag van die Here wat kom. Dis ’n donker dag waarop mense gaan swaarkry en doodgemaak gaan word. Al die volke gaan rondhardloop, so bang gaan hulle daardie dag wees. Daar gaan oorlog oor Egipte kom. En die oorlog gaan so erg wees dat daar nie ’n plek gaan wees waar daar nie lyke rondlê nie. Egipte se rykdom gaan vernietig word en die land tot op die grond verwoes word. Selfs die land aan die suide van Egipte, Etiopië, sal vernietig word. Die oorlog gaan so erg wees dat dit gaan oorspoel na ander lande en hulle ook vernietig. Etiopië, Libië en Arabië met al hulle bondgenote sal verwoes word.” Want so sê die Here: “Almal wat met Egipte saamgestaan het en hom ondersteun het, sal vernietig word. Egipte het gedink hy is sterk. Maar hy sal ondergaan. Nêrens in die land sal daar iemand oorbly nie. Hulle sal almal in die oorlog doodgemaak word,” sê die Here, die God van Esegiël. “Egipte sal soos ’n woestyn word met niemand wat daarin bly nie. Dieselfde sal ook met al die nasies rondom Egipte gebeur. Egipte se stede sal soos ’n woestyn wees met geen lewe in nie; so ook die stede rondom Egipte. Die stede sal net ruïnes wees. Die mense van Egipte sal dan besef dat dit Ek was wat hulle land aan die brand gesteek het en al die nasies wat Egipte gehelp het, ook uitgeroei het. Daardie tyd stuur Ek boodskappers wat in vinnige skepe kom. En hulle sal die Etiopiërs wat rustig woon, die skrik op die lyf gaan jaag. Almal sal paniekbevange rondhardloop daardie dag as Ek Egipte finaal vernietig.” Want so sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gebruik koning Nebukadnesar van Babilonië om al die baie mense van Egipte te vernietig. Hy en al sy soldate word gestuur om die land tot op die grond te verwoes. Sy soldate het geen genade vir mens of dier nie. Hulle sal Egipte aanval. En hulle sal die mense van Egipte doodmaak totdat die hele land vol lyke lê. Ek laat selfs die Nyl opdroog sodat dit geen water meer het nie. En Ek gee die land in die hande van slegte mense. Hulle sal die land verwoes, en almal wat daar bly, doodmaak. Ek gebruik mense van vreemde lande om dit te doen. Luister mooi! Dit is Ek, die Here, wat nou aan die woord is.” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek slaan die afgodsbeelde van Egipte stukkend. Al die beelde van afgode wat opgerig is by die hoofstad, Memfis, breek Ek in stukke. Daar sal niemand meer in Egipte oor wees om oor die land te regeer nie. Geen wet sal meer geld nie. Ek vernietig al die groot en belangrike stede, Patros en Soan en No. Daar sal net ruïnes oorbly van hierdie pragtige stede. Ek verbrand hulle in my woede. Ek slaan die sterkste stad in Egipte, Sin, met my vuis plat, so kwaad is Ek vir Egipte. En Ek trap die soldate plat wat in die kwartiere in No bly, sonder genade. Ek brand die hele Egipte tot op die grond af. Die mense wat in Sin bly, sal krul van die pyn wat hulle gaan tref. Ek skeur die mense van No uitmekaar. En Ek sal die mense van Memfis helder oordag aanval. Die jongmense wat in Awen en Pi-Beset bly, sal in die oorlog doodgemaak word. En die vroue sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word. In Tagpanes sal die son in die middel van die dag ondergaan, so donker sal dit word. Want Ek sal Egipte verwoes. Hy sal geen mag meer hê nie. “Egipte het gedink hy is so sterk. Hy het oral geloop en spog oor hoe sterk hy is. Daardie dag sal Ek sy mag breek. Dit sal lyk of donker onweerswolke oor die land opgekom het, die dag as die mense van die land as gevangenes weggevat word. Ek straf Egipte swaar. Dan sal Egipte weet en erken dat Ek die Here is.” Op die twintigste April 587 v.C. het die Here met my gepraat. Koning Jojagin was toe al elf jaar ’n gevangene in Babilonië, ver van sy eie land. Die Here het vir my gesê: “Mens, Ek het die arm van die regeerder van Egipte, die farao, gebreek. En sy arm is nie in gips gesit sodat dit weer kan aangroei nie. Sy arm sal nie weer aangroei en sterk word sodat hy ’n swaard daarmee sal kan vashou nie. “Want,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek is sy vyand. Ek breek al twee sy arms. Ek breek die goeie arm waarmee hy kan veg, en die arm wat al klaar af is, breek Ek nog verder. Die heerser van Egipte se swaard sal op die grond val. Hy sal hom nie kan vashou nie. Ek verstrooi die mense van Egipte onder baie nasies. Hulle sal as gevangenes weggevat word. Ék maak die koning van Babilonië se arms sterk. En Ek sit my swaard in sy hand. Maar Ek breek die arms van die koning van Egipte. Hy sal op die grond bly lê as Ek met hom klaar is. Hy sal so gewond wees dat niks of niemand sy lewe sal kan red nie. Hy sal brul van die pyn. Ja, Ék maak die arms van die koning van Babilonië sterk. Maar die koning van Egipte sal nie sy arms kan gebruik nie. Want Ek sit my eie swaard in die hand van die koning van Babilonië. Hy sal Egipte daarmee verwoes. “Ek verstrooi die Egiptenaars onder die nasies. Hulle sal gevangenes in ander lande wees. Dan sal hulle erken dat Ek die Here is!” Op die 21ste Junie 587 v.C. het die Here verder met my gepraat. Ons koning, Jojagin, was toe al elf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land. Die Here het vir my gesê: “Mens, gaan sê vir die koning van Egipte en vir al sy mense wat Ek sê. Ek dink só oor hulle: Jy was so trots en jy het gedink niemand is so sterk soos jy nie! Jy het gedink jy is so sterk soos Assirië, die land daar in die ooste. “Kom Ek vertel jou wat het met Assirië gebeur. Assirië het soos ’n hoë sederboom op die hoogste berg in my land, die Libanonsberg, gegroei. Assirië was ’n groot en sterk nasie. Hy was soos ’n sterk boom wat sy skaduwee oor ’n groot deel van die aarde gegooi het. Hierdie boom het gedink sy top is tussen die wolke, so hoog was hy. Waar hy gegroei het, was daar baie water. Daar was soveel water dat al die bome rondom hierdie groot boom ook genoeg water gehad het. “Hierdie groot boom het uitgetoring bo al die ander bome. Die takke van die boom het dik gegroei omdat sy wortels in diep water gestaan het. Die voëls het graag in die groot boom se takke nes gemaak. En die wilde diere het op die hitte van die dag in die skaduwee van die boom gaan lê. Daar is hulle kleintjies gebore. Die boom was pragtig en sterk, want die wortels van die boom het tot by die water gegroei. Hierdie boom het hoër gegroei as enige ander boom op aarde. Geen ander boom wat deur God geplant is, was so mooi soos hierdie boom nie. Ek het hierdie boom so mooi laat groei. Die ander bome in die bos was jaloers op hierdie boom.” Maar nou sê die Here, die God van Esegiël: “Hierdie mooi boom het toe trots geword. Hy het begin dink dat hy baie goed en mooi is. Hy het gedink hy is beter as die ander bome. Hy het gedink hy kan sy top in die wolke indruk. Daarom gee Ek hierdie boom weg vir vyande wat met byle en sae sal kom. Hulle kap hierdie boom af en saag hom in stukke. Hierdie boom het slegte dinge gedoen. Daarom gooi Ek hom weg. ’n Vreemde nasie se soldate kom hom afkap. Hulle het die boom wat afgekap is, op die grond laat lê. Die takke van die boom het op al die berge en in die valleie oor die hele land gelê. Almal wat in die skaduwee van die boom gebly het, het toe padgegee. Die voëls sit nou op die boom wat omgeval het. Die wilde diere loop tussen die takke deur en wei. Laat die ander bome dít hieruit leer: Laat geen ander nasie ooit so vol van hulleself word soos hierdie boom nie. Laat geen boom wat by die water staan, weer so hoog probeer groei nie. Alle nasies wat so hoog soos die wolke groei, sal dieselfde pad loop. Ek sal hulle platslaan. Al sulke nasies sal vernietig word.” So sê die Here, Esegiël se God: “Assirië het in sy graf beland. Almal het gehuil toe hy begrawe word. Selfs die waters wat hom van kos voorsien het, het opgehou om te loop, so het hulle oor hom getreur. Die Libanonsberge het ook gehuil. Hy het swart begrafnisklere aangetrek. Al die bome in die bos het droog geword. En Ek het al die nasies laat bewe, so bang was hulle toe hierdie groot boom geval het. Die aarde het gedreun van die slag. Ek het Assirië in sy graf laat beland. Net so het Ek alle trotse mense doodgemaak. Al die ander trotse bome wat ook in die tuin van Eden gegroei het, het gesien dat hierdie groot boom saam met hulle in die graf beland het. Die mooiste en beste bome wat diep wortels gehad het wat tot by die waters gegaan het, is almal graf toe. En almal wat die groot boom gehelp het, is ook verwoes. Hulle is ook nou dood. Al die nasies wat in die skaduwee van die groot boom geleef het, is daarmee heen. “Egipte, wie was so groot en sterk soos jy? Jy het gedink jy is die sterkste en die beste. Watter boom wat deur die Here geplant is, het so hoog soos jy gegroei, koning van Egipte? Maar jy sal ook so laag daal soos die graf. Jy sal saam met al die ander nasies vernietig word. Jou graf sal tussen al die mense wees wat deur die swaard doodgemaak is. Dit is die uiteinde van die koning van Egipte en sy baie soldate.” Die Here, die God van Esegiël, het dit gesê, en dit sal gebeur. Op die derde Maart 585 v.C., toe koning Jojagin al twaalf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land was, het die Here vir my gesê: “Mens, huil oor die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom: Jy dink jy is soos ’n sterk jong leeu. Jy is só trots as jy tussen die ander nasies is. Maar weet jy wat jy eintlik is? Jy is eintlik maar net ’n seemonster wat in ’n rivier beland het. En al wat jy regkry, is om modder op te skop. “Daarom stuur Ek baie mense om teen jou te baklei,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle sal jou in hulle nette injaag en jou uit die water sleep. Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet. Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die koning van Babilonië sal kom en jou aanval. Ek vernietig jou in daardie oorlog, want hulle is sterk en ervare soldate. Al die nasies is bang vir die Babiloniese weermag. Hulle sal jou op jou knieë bring, Egipte, want jy is ’n trotse volk. Sy soldate sal jou vernietig. Dan vernietig Ek jou skape en beeste wat langs die riviere wei. Nooit sal enige dier of mens weer daar kom nie. Ek maak jou land ’n verlate plek, ’n woestyn. Die riviere van Egipte sal dan kalm word. Hulle sal soos olie vloei, sonder dat iemand dit versteur,” sê die Here, Esegiël se God. “Daardie dag verwoes Ek jou land. Niemand sal bly leef nie. Ek maak alles en almal dood. Dan sal jy weet en erken dat Ek die Here is. Al die mense sal by jou begrafnis sing. Hulle sal sing omdat Egipte en al sy mense dood is,” sê die Here, die God van Esegiël. Op die sewentiende Maart van daardie jaar het die Here verder met my oor Egipte gepraat. “Mens, huil oor die mense van Egipte. Maar huil ook oor die mense van die ander nasies, want Ek laat hulle almal doodgaan. Hulle sal binnekort in die graf wees saam met al die ander mense wat alreeds dood is. Sê vir hulle: Egipte, is jy dalk beter as die ander nasies? Nee! Daarom gooi Ek jou op die grond. Jy lê in die graf saam met die ander nasies wat Ek ook gestraf het. Egipte gaan dood in die oorlog wat Ek stuur. Egipte het in die hof beland oor sy slegte dade, en Ek oordeel hom. Die sterk leiers van die nasies wat Ek reeds doodgemaak het en wat nou in die graf lê, sê: ‘Welkom, Egipte! Julle het nou julle verdiende loon gekry. Julle lê nou tussen ons almal wat deur die Here vernietig is. Ons is almal in die oorlog doodgemaak.’ “Assirië lê daar. Rondom hom is die grafte van al sy mense. Hulle is in die oorlog doodgemaak. Hulle grafte is diep in die grond gegrawe. Al hulle soldate lê ook daar. Vroeër het hulle baie mense doodgemaak. Almal was vir hulle bang. Kyk waar lê hulle nou! In die graf. Hulle vyande het hulle doodgemaak. “Elam lê daar. Al die mense van Elam lê ook in die graf. Ek het hulle soontoe weggejaag toe Ek hulle gestraf het. Almal was doodbang vir hulle. Maar waar is hulle nou? Hulle lê doodstil in die graf. Hulle kan niks doen nie. Ek het hulle tot in die dood toe verneder. Hulle lê nou magteloos daar saam met die ander wat in die oorloë dood is. Die grafte van al hulle mense is rondom hulle. Vroeër was die hele wêreld bang as jy net hulle naam noem. Maar nou lê hulle in die graf. Daar het niks van hulle oorgebly nie. “Mesek-Tubal is ook daar, in die graf. Al hulle soldate se grafte is om hulle. Vroeër het mense gebewe as hulle van hierdie soldate gehoor het. Maar nou het Ek hulle van die aarde afgevee. Hulle is in die oorlog doodgemaak. Hulle het nie eens behoorlike begrafnisse gehad soos helde wat in die oorlog dood is nie. Hulle is nie soos helde met militêre eerbewys begrawe nie. Almal was vir hulle bang. En wat het met hulle gebeur? Hulle is sommer in ’n gat in die grond gegooi. “En nou dink jy, Egipte, dat dit met jou goed sal gaan? Ook jy sal van die aarde afgevee word! Jy sal ook doodgemaak word in die oorlog wat Ek stuur. Jy sal saam met die ander in die graf lê. “Edom is reeds daar in die doderyk, met sy konings en prinse. Hulle was so sterk. En nou lê hulle tussen die soldate van ander lande wat mense doodgemaak het. Hulle is nou tussen die mense wat van die aarde weggevee is oor hulle slegte dade. So ook al die prinse van die noorde en die mense van Sidon: hulle lê almal in die graf. Vroeër was mense vir hulle bang, maar nou het daar niks van hulle oorgebly nie. Hulle lê tussen die mense wat Ek vernietig het. “Daardie dag as die koning van Egipte in die graf beland, sal hy uitvind dat dit nie net sy soldate is wat almal doodgemaak is nie.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Hy het duisende mense laat doodmaak. Sy soldate het baie nasies aangeval. Ek het toegelaat dat hy dit doen. Ek het hom gebruik. Ek het mense banggemaak. Maar nou kom die dag dat hy voor My gaan staan. En Ek oordeel hom oor sy slegte dade. Ek sal hom ook van die aarde af wegvee. Hy sal in die oorlog doodgemaak word. Dit is Ek, die God van Esegiël, wat hier praat.” Die Here het weer met my gepraat: “Mens, sê vir jou mense wat Ek vir jou sê. Mense stel iemand aan wat waghou om te kyk of daar nie ’n vyand is wat die land gaan aanval nie. Die man wat waghou se werk is om die volk te waarsku as hy die vyand sien aankom. Hy gee ’n teken en dan weet die volk gevaar dreig. As dit nou gebeur dat die mense hoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle doen niks daaraan nie, is dit hulle eie skuld as die vyand hulle kom doodmaak. Hulle het gehoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle het hulle nie aan die waarskuwing gesteur nie. Dis hulle eie skuld as die vyand hulle betrap terwyl hulle nie reg is om te veg nie. As hulle na die waarskuwing geluister het, sou hulle gereed gewees het om teen die vyand te veg. En dan sou hulle tien teen een nie dood gewees het nie. Maar sê nou die man wat aangestel is om op die uitkyk te wees vir vyande doen nie sy werk nie; sê nou hy sit en slaap; of hy loop rond en doen nie sy werk nie; die vyand val die land binne, maar die man waarsku nie sy volk nie, dan is hierdie man verantwoordelik as iemand deur die vyand doodgemaak word. Die mense wat doodgemaak word, gaan dood omdat Ek hulle vir hulle slegte dade straf. Maar hierdie man sal moet betaal vir die feit dat die mense dood is, want hy het nie sy werk gedoen nie. “Esegiël, Ek stel jou aan om wag te hou. Jou werk is om te kyk of daar nie ’n vyand aankom wat die land gaan aanval nie. Jou werk is om op die uitkyk te wees en jou volk te waarsku. Jy moet fyn luister na wat Ek sê. En dan moet jy hierdie volk namens My gaan waarsku. Ek gaan dalk vir jou sê dat daar mense is wat aanhou om slegte dinge te doen en dat Ek hulle daarvoor gaan straf. As jy hierdie mense nie waarsku dat hulle moet ophou met slegte dinge en goeie dinge moet begin doen nie, sal hulle doodgemaak word. Ek sal dit doen. Maar jy sal moet betaal omdat hulle dood is, want jy het nie jou werk gedoen nie. Maar as jy hulle waarsku en vir hulle sê wat Ek jou beveel en hulle hulle nie daaraan steur nie, sal hulle doodgemaak word. As hulle nie omdraai en agter My aanloop nadat jy hulle in my Naam gewaarsku het nie, sal Ek hulle straf. Maar jy sal nie gestraf word vir hulle dood nie, want jy het gedoen wat Ek jou beveel het. “Mens, sê vir die volk Israel wat Ek sê: Julle hou aan met kla dat julle swaar gestraf word. Julle sê julle slegte dade kom op julle eie koppe af. Dit gaan sleg met julle. ‘Ons vergaan,’ sê julle. ‘Ons kan nie só aanhou leef nie!’ “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, Esegiël se God, “dis nie vir My lekker om mense dood te maak nie. Maar as mense aanhou om slegte dinge te doen en Ek hulle daaroor gewaarsku het, het Ek geen ander keuse as om hulle dood te maak nie. Ek wil so graag hê hulle moet omdraai en agter My aanloop. Ek wil so graag sien dat hulle begin doen wat Ek sê. Dan sal hulle leef! Daarom, draai dadelik om, my volk. Draai weg van jou slegte paaie af. Hoekom tart julle My? Hoekom wil julle hê Ek moet geen ander keuse oorhê as om julle te straf en dood te maak nie?” “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê. Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe. “Jou mense sê: ‘Die Here maak nie reg met mense nie!’ Maar dit is hierdie mense wat nie reg maak nie. Ek sê weer: slegte mense sal doodgemaak word oor die slegte dinge wat hulle doen. As mense wat die goeie doen, die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word. Maar as mense wat sleg doen, ophou daarmee en begin doen wat Ek sê, sal hulle lewe. En nou sê julle dat Ek nie reg doen nie? Dit terwyl Ek oor elke mens sal oordeel volgens wat hy gedoen het!” Op die agtste Januarie 585 v.C., toe ons al twaalf jaar lank gevangenes in ’n vreemde land was, het ’n man by my aangekom. Hy het uit Jerusalem gevlug. Hy het kom sê: “Jerusalem het geval!” Die vorige aand het die Here Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Toe kon ek weer praat, want ek was mos vir ’n lang ruk stom. Toe hierdie man die volgende oggend by my aankom, kon ek met hom praat. Toe het die Here my beveel wat om te sê. “Mens, almal wat tussen die stede van Juda bly wat in puin lê, sê: ‘Die land is ons s’n. Abraham was net een mens, en die Here het die hele land vir hom gegee. Ons is tog baie meer as hy. Die land is nou ons eiendom!’ “Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Julle hou aan om my voorskrifte te verwerp. Julle eet julle vleis op maniere wat Ek beveel het julle nie mag nie. Julle offer saam met die mense van ander nasies aan hulle afgode. En julle hardloop na die afgode toe as julle hulp nodig het. Julle maak mense dood wat onskuldig is. En nou eis julle dat Ek hierdie land vir julle moet gee? Julle wil my land vir julleself hê? Julle is ’n klomp moordenaars! Julle buig voor afgode! Julle slaap by ander mans se vroue! Moet Ek dan nou hierdie land vir julle gee? “Sê vir hierdie spul mense wat die Here, die God van Esegiël, van hulle dink: So seker as wat Ek leef, julle sal daar tussen julle stede wat net bouvalle is, doodgemaak word. Ek sorg dat julle in die oorlog doodgaan. As iemand in die oop veld bly, sal die wilde diere hom vang en opvreet. Daardie mense wat in grotte en ander veilige plekke probeer wegkruip, sal van siektes doodgaan. Ek sal julle land vernietig. Julle sal niks oorhê waarop julle trots kan wees nie. Julle het gedink julle is so sterk. Daarvan sal niks oorbly nie. Ek breek selfs jou berge af sodat niemand meer oor die berge hoef te trek nie. Jou land sal gelyk soos die see wees as Ek daarmee klaar is. Ek straf selfs jou land oor jou slegte dade. Daardie dag as Ek jou land in ’n bouvallige ruïne verander het, sal hulle weet dat Ek die Here is. “Mens, jou volk skinder oor jou agter jou rug. Hulle lag en spot met jou as jy dit nie sien nie. Hulle sê: ‘Kom ons skeer die gek met Esegiël! Kom ons maak of ons wil hoor wat sy God vir ons te sê het!’ Dan kom staan hulle voor jou. Hulle maak asof hulle belangstel in wat Ek vir hulle wil sê. Hulle maak of hulle luister as jy praat. Maar hulle stel nie vir een oomblik belang om te doen wat Ek vir hulle sê nie. Hulle praat asof hulle My liefhet. Maar kom Ek sê vir jou: hierdie volk is net vir een ding lief. Geld! Hulle hardloop net agter geld aan. Dis al waarin hulle belangstel. Hulle lag lekker oor alles wat jy oor hulle kwytraak. Jy is vir hulle soos iemand wat ’n mooi stem het en liefdesliedjies sing. Dis vir hulle mooi. En hulle klap vir jou hande. Maar hulle doen niks wat jy sê nie. Jy is maar net soos iemand wat mooi musiek op die een of ander instrument maak. Hulle hoor wat jy sê, maar dis by die een oor in en by die ander een uit. “Maar luister nou mooi. Al hierdie verskriklike dinge waarvan Ek jou vertel het, gaan gebeur. So seker as wat die son môre opkom, gaan dit gebeur. En glo My: dan sal hierdie klomp mense weet dat daar iemand tussen hulle was wat alles presies net so gesê het soos Ek hom beveel het!” Toe het die Here vir my gesê: “Mens, sê vir die skaapwagters van Israel wat Ek vir jou sê. Hulle is die leiers van my volk. Wel, die Here, Esegiël se God, sê vir hulle: Ek gaan julle vernietig, want julle eet die kos wat vir die skape bedoel was. Is dit nie skaapwagters se werk om vir die skape te sorg en vir hulle kos te gee nie? “Julle drink die melk wat die diere vir julle gee. Julle dra klere wat geweef word van die wol wat hulle gee. En julle slag die beste skape om hulle vleis te eet. Maar julle gee nie eens vir hierdie diere kos nie! Hulle vrek van die honger. Julle gee nie om vir die swak skape nie. Julle sorg ook nie vir die siek diere nie. As ’n skaap ’n been breek, doen julle net mooi niks daaraan nie. Julle verbind nie die wonde en spalk die breuke nie. Julle gaan soek nie die skape wat wegdwaal van die trop en wegraak as dit donker word nie. Nee, julle behandel die trop skape sleg. Julle is wreed en maak hulle seer. Julle is mos sterker as die skape. Daarom loop hierdie trop skape, my volk, alleen rond. Hulle het nie ’n skaapwagter wat hulle oppas nie. Wilde diere vang onder hulle, want hulle word nie beskerm nie. My skape loop alleen op die heuwels en in die valleie. Hulle is al oor die hele aarde verstrooi. Niemand gaan soek hulle nie. “Daarom moet die skaapwagters baie mooi luister na wat Ek vir hulle sê. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle het my trop skape gelos en nie vir hulle gesorg nie. Julle het nie omgegee as wilde diere my skape aanval en doodmaak nie. Julle het niks daaraan gedoen nie. Ek het julle aangestel as skaapwagters om my skape op te pas. Maar julle het nie eens die moeite gedoen om op te staan en te gaan soek as van my skape weggeraak het nie. Julle het net vir julleself gesorg. Julle het julleself trommeldik geëet, maar my skape het van die honger gevrek.” Daarom, luister mooi, skaapwagters. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle is van nou af my vyande, skaapwagters! Ek hou julle verantwoordelik vir elke skaap. Julle sal vir My moet kom sê hoe dit met elke skaap gaan en wat van elke skaap geword het. En julle sal ook nie meer vir my skape kos gee nie, want Ek kan julle nie vertrou nie. Julle vat die kos vir julleself. Julle sal nie langer slag en eet soos julle wil nie. Ek red my skape uit julle hand.” Nou sê die Here, Esegiël se God: “Ek soek self my skape wat weg is. En as Ek hulle kry, bring Ek hulle terug en gee vir hulle kos. Ek is van nou af die Skaapwagter wat vir hierdie trop skape sorg wat oor die hele wêreld rondloop. Ek sal hulle gaan soek en hulle red. Die dag toe dit bewolk was en die lug donker was, het baie van my skape verdwaal. Maar Ek sal hulle gaan soek en hulle veilig terugbring huis toe. Ek bring hulle terug na hulle eie land toe, na Israel. Ek gaan haal hulle tussen die ander volke uit waar hulle as gevangenes woon. Dan sal Ek vir hulle genoeg kos gee. Hulle sal op die heuwels wei en by die riviere water drink. Hulle sal veilig wees omdat daar oral mense sal wees wat hulle beskerm. Ja, Ek loop voor die skape uit en bring hulle by die beste weiveld. Op die hoogste berge van Israel sal hulle die beste gras kry. En as hulle klaar gewei het, sal hulle veilig lê en rus. Want Ek is daar tussen hulle. Ek beskerm hulle. Ek gee vir my skape net die beste. Van nou af sal Ek self vir my skape sorg. Ek vertrou hulle nie meer aan enigiemand toe nie. My skape sal rustig wees. As hulle rus, sal niks hulle versteur nie.” Dit is die Here, die God van Esegiël, wat so sê. “Ek sal self daardie skape gaan soek wat wegdwaal en verlore raak. Ek sal hulle veilig huis toe bring. En as ’n skaap seerkry, sal Ek self vir hom sorg. Ek sal sy wond verbind. Die swak skape sal Ek op my skouers dra. Maar die vet skape wat ander seermaak, sal Ek laat slag. My skape sal goed behandel word, want Ek gee vir hulle om.” Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat vir die kleinvee wat aan My behoort, sê: “Julle is my volk. Ek sal sorg dat daar aan die skape en die bokke reg gedoen word. Ek sal hulle leer om mekaar reg te behandel. Ek sal ook nie meer die skape en die bokke tussen mekaar laat wei nie. Nee, hulle sal in twee troppe wei. Party van die skape en bokke was selfsugtig. Hulle het die beste gras afgevreet en die res van die gras vertrap. Daar was nie gras oor vir die ander skape nie. Of hulle het die beste water gedrink en dan in die water gespring sodat dit vol modder geword het. Die ander skape het dan nie lekker water gehad om te drink nie. Al wat vir die res van die trop oorbly, is die gras wat julle vertrap het en die water wat julle vuil gemaak het. “Daarom gaan Ek die vet skaap en die maer skaap voor My roep. Ek gaan oor hulle toekoms besluit nadat Ek gesien het hoe hulle optree. Ek gaan kyk wie het reg gedoen, en wie het slegte dinge doen.” So sê die Here, Esegiël se God: “Julle vet skape het die ander skape weggestoot sodat hulle nie by goeie gras kon uitkom nie. Julle het die swak en die honger skape met julle horings weggedruk totdat hulle vandag gevangenes in ver en vreemde lande is. Daarom gaan Ek my trop skape red. My skape sal nie langer sleg behandel word nie. Niemand sal hulle meer doodmaak nie. Want Ek sal sorg dat reg gedoen word tussen een skaap en ’n ander. Ek stel self ’n skaapwagter oor my skape aan. Hy sal so ’n goeie leier wees soos koning Dawid. Hy sal sorg dat my skape op presies die regte tyd kos kry. Hy sal ’n goeie skaapwagter vir my skape wees. Ek, die Here, sal my skape se God wees. En Dawid sal soos die seun van ’n koning tussen my mense wees. Almal sal hom volg. Ek, die Here, het so gesê!” “Daardie dag maak Ek ’n ooreenkoms met my trop skape. Ek belowe dat Ek al die gevaarlike wilde diere uit die land sal wegjaag. My skape sal op enige plek kan loop. Hulle sal selfs oornag buite kan slaap sonder om bang te wees vir roofdiere. Ek laat dit goed gaan met my volk. In al hulle huise wat rondom my huis in Jerusalem gebou is, sal daar meer as genoeg wees. Ek stuur die heerlikste reënbuie elke keer as dit begin droog word. Dit sal goed gaan met my mense. Hulle sal genoeg van alles hê. Hulle sal elke jaar rekordoeste hê. Die vrugtebome se takke sal swaar hang van al die vrugte. En die landerye sal elke jaar ’n goeie oes gee. My volk sal veilig in hulle land woon. Hulle sal geen vyand hê wat hulle bedreig nie. Hulle sal nie meer gevangenes van ander nasies wees en in vreemde lande bly nie. Ek sal hulle daar gaan uithaal en terugbring na hulle eie land. Dan sal my volk weet dat Ek die Here is. Ander nasies sal hulle nie meer aanval nie. En wilde diere sal hulle nie meer in hulle eie land aanval nie. Hulle sal veilig wees. Hulle sal nie meer vir enigiets bang wees nie. “Hulle land sal bekend word oor die hele wêreld as die land wat meer as genoeg kos het. My volk sal nooit weer honger ly nie. Hulle sal nooit weer buig voor ander nasies nie, en niemand sal hulle gevange neem en weglei om in vreemde lande te gaan bly nie. Ander nasies sal nooit weer met my volk spot omdat dit so sleg gaan met hulle nie. Wanneer dit gebeur, sal my volk erken dat hulle my volk is.” So sê die Here, die God van Esegiël. “Julle is my trop skape. Julle is die volk wat Ek vir Myself gekies het. Ek sorg vir julle. Julle is my volk, en Ek is julle God,” sê die Here, Esegiël se God. Die Here het toe weer met my gepraat. “Mens, kyk in die rigting van die berg Seïr. Dit is die land waar die mense van Edom bly. Sê vir hierdie mense die Here, die God van Esegiël, dink só oor hulle. Jy moet vir hulle sê: Ek is jou vyand, Seïrberg. En Ek is ’n gedugte vyand! Ek slaan jou met die vuis tot daar niks van jou oorbly nie. Ek vee jou stede plat. Ek maak jou land ’n woestyn waarin niks kan lewe nie. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. Want jy het nie opgehou om my volk, Israel, te haat nie. Toe hulle vyande hulle agtervolg het, het julle vir hulle gelê en wag. Julle het hulle voor die voet doodgemaak. Jy het dit gedoen aan hulpelose, desperate mense. Ek het my volk gestraf oor hulle slegte dade. En toe Ek klaar was daarmee, het jy aangehou om hulle dood te maak. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek maak julle dood. Julle het nie geskrik vir die mense van Israel se bloed nie. Julle sal julle eie bloed sien spat. Dis nou julle beurt om doodgemaak te word! Die Seïrberg sal ’n woestyn word. Ek maak elkeen dood wat dink hy kan ontsnap. En elkeen wat wil terugkom, maak Ek ook dood. Jou berge sal vol lyke lê. Waar jy kyk, op die heuwels en in die valleie en langs die riviere, sal daar net lyke wees. Ja, Ek maak jou ’n woestyn, vir altyd. Niemand sal jou stede herbou nie. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is. “Julle het mos gesê: ‘Israel en Juda is nou uit hulle lande verdryf. Hulle is gevangenes in ver lande. Hulle lande word nou ons eiendom. Wat maak dit saak dat die Here daar is? Ons steur ons nie aan Hom nie!’ “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “luister mooi: Ek betaal jou met gelyke munt terug vir wat jy gedoen het. Jy het Israel gehaat. Jy het hom sleg behandel. Ek straf jou daarom vir die slegte dade wat jy gedoen het omdat jy kwaad was vir my volk. Die dag as Ek jou straf, sal jy weet wie Ek is. Dan sal jy agterkom dat Ek elke woord gehoor het wat jy gesê het. Jy het mos na die berge van Israel gekyk en gesê: ‘Hulle is platgevee. Kom ons gaan en verwoes die land verder!’ “Jou mond was groot oor wat jy alles gaan doen. Min het jy geweet Ek het alles gehoor wat jy sê!” Daarom sê die Here, Esegiël se God, nou vir jou: “Die hele wêreld sal hande klap en skree, so bly sal hulle wees as Ek jou platvee en jou ’n woestyn maak. Jy het mos hande geklap, so bly was jy toe Israel se land verwoes is. Nou doen Ek presies dieselfde met jou. Niemand sal meer in jou land kan bly nie, want dit sal ’n woestyn word. Ek vee die mense wat op die Seïrberg bly en al die mense wat in Edom bly, van die aarde af. Daardie dag sal jy erken dat Ek die Here is.” “Mens, sê vir die berge van Israel wat Ek jou beveel. Sê vir hulle: Hoor wat die Here sê. Jou vyande het met jou gespot. Hulle het oor jou gelag. Hulle het gesê: ‘Ha, ha! Nou is Israel se berge ons s’n! Ons vat dit vir onsself!’ “Daarom moet jy vir die berge van Israel sê: Jou vyande het jou uit al die windrigtings aangeval. Nou behoort jy aan ’n hele klomp nasies. Hierdie nasies spot met jou en skinder oor jou.” Daarom, berge van Israel, hoor wat die Here, Esegiël se God, vir julle sê. Hy praat met die heuwels en die berge, die valleie en die gelykveld. Hy praat met die bouvalle en die stede in jou wat lankal verlate is sonder ’n lewende siel daarin. Jou land is lankal verwoes, en die nasies oor die hele aarde spot met jou. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek is kwaad vir hierdie nasies. Hulle het My jaloers gemaak omdat hulle met my volk en sy land spot. Ek is veral woedend vir Edom. Hulle het My in die gesig gevat toe hulle hierdie land sommerso vir hulleself gevat het. Hulle het alles gebuit wat hulle in die hande kon kry. “Daarom, sê vir die heuwels en berge van Israel, vir die valleie en die gelykveld, Ek, die Here, Esegiël se God, sê van hulle: Ek is kwaad oor wat die nasies rondom jou jou aangedoen het. Hulle het met jou gespot en jou beledig.” Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sweer dat hierdie nasies volgende aan die beurt sal kom. Hulle sal ook gespot en beledig word. Maar die berge van Israel sal dan goeie oeste lewer. Wanneer my volk terugkom in die land, sal daar te veel vrugte wees om te eet. En daardie dag is naby. My volk kom een van die dae terug huis toe! Sien, Ek gee vir jou om. Ek staan gereed om jou te help. Jou landerye sal weer bewerk word. Jy sal weer oeste lewer. Ek sal Israel ’n groot en sterk volk maak. Die stede wat nou net bouvalle is, sal herbou word. Hulle sal vol mense wees. En nie net jou mense nie, maar ook jou skape en beeste sal baie word. Daar sal weer mense op jou bly, berge van Israel. Dit sal met jou beter gaan as ooit tevore. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. My volk sal weer op jou rondloop. Ek sal daarvoor sorg. My volk sal die berge erf. Jy sal nooit weer my volk se kinders se dood veroorsaak nie.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die nasies spot julle, berge, en sê julle eet julle eie land se mense op. Maar dit sal nooit weer gebeur nie. Die land sal nie weer sy mense doodmaak nie. Ek sê so, en Ek is die Here, Esegiël se God. Ek sal ook nie toelaat dat daardie vreemde nasies langer met jou spot en oor jou lag nie. Hulle sal nie weer aanmerkings oor julle maak nie. Hierdie land se mense sal nie meer doodgemaak word nie,” sê die Here, die God van Esegiël. Toe het die Here verder vir my gesê: “Mens, toe die volk Israel in hulle land gebly het, het hulle die land onbewoonbaar gemaak met al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle slegte dade was soos ’n vuil lap in my hand. Ek kon niks daarmee doen nie. Hulle het die land vuil gemaak deur onskuldige mense dood te maak en voor afgode neer te buig. Daarom het Ek my woede oor hulle uitgestort. Ek het hulle onder baie nasies verstrooi. Omdat hulle slegte dade bly doen het, het die nasies hulle as gevangenes weggeneem om in ver lande te gaan bly. En weet jy wat doen hulle toe in die vreemde lande waarheen Ek hulle weggejaag het? Hulle het doodgewoon net aangehou met hulle slegte dade. Die nasies het gesê: ‘Die Here, die God van Israel, kon nie sy volk beskerm nie. Hulle was sy volk, maar Hy was nie in staat om hulle teen die Babiloniërs te beskerm nie.’ Toe Ek dit hoor, het Ek besef dat die ander nasies My nie erken vir wie Ek is nie. Ek moes iets daaraan doen.” Daarom, sê vir Israel die Here, Esegiël se God, belowe: “Ek bring julle terug na julle eie land toe. Maar dit is nie omdat julle dit verdien nie. Ek doen dit sodat die nasies My sal raaksien vir wie Ek is. Julle het niks gedoen om vir die nasies tussen wie julle as gevangenes gebly het, te wys wie Ek is nie. Ek sal vir julle wys wie Ek regtig is. Julle sal die Een sien wat julle nie wou aanbid terwyl julle gevangenes in die vreemde land was nie. Wanneer Ek Myself vir julle wys soos Ek is, sal die ander nasies erken dat Ek die Here is. Want hulle sal My ook sien.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sal julle wys wie Ek is daardie dag as Ek julle bymekaarmaak waar julle tussen die nasies as gevangenes bly. Ek sal julle na julle eie land toe bring. Daardie dag sal Ek julle skoonmaak. Dan sal julle regtig skoon wees, vir die eerste keer. Ek sal al die slegte dade van julle afwas, en julle sal nie meer voor die afgode buig en offers aan hulle bring nie. Want Ek sal julle harte nuut maak. Dan sal julle heeltemal anders dink. Ek maak julle van voor af nuut. Ek haal julle ou harte uit wat kliphard geword het van al die slegte dinge wat julle doen. En Ek maak julle heeltemal gehoorsaam aan My. Ek sal daardie dag my Gees in julle laat bly. Hy sal julle leer om gehoorsaam te wees aan wat Ek julle beveel. Dan sal julle doen wat Ek sê. “Dan sal julle weer in die land Israel leef. Dit is die land wat Ek lank terug vir Abraham en Isak en Jakob gegee het. Julle sal my volk wees. En Ek sal julle God wees. Ek sal julle silwerskoon maak sodat julle nie meer slegte dinge sal doen nie. Ek sal aan julle goeie oeste op julle lande gee. Niemand sal meer honger wees in julle land nie. As julle vrugtebome plant, sal hulle elke jaar meer vrugte dra as wat julle kan eet. En julle sal rekordoeste hê van koring en mielies. Die nasies rondom julle sal nooit weer met julle kan spot omdat julle swaarkry en honger is nie. Daardie dag sal julle onthou watter slegte dinge julle aangevang het. En dan sal julle bloedrooi van skaamte word. Julle sal julleself haat oor al julle sondes. “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!” So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer Ek julle skoonmaak van al die slegte dinge wat julle gedoen het, sal Ek weer mense in julle stede laat bly. Die bouvalle waar julle stede eers was, sal weer opgebou word. Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is. Maar wanneer Ek julle terugbring, sal die mense sê: ‘Kan jy dit glo? Hierdie godverlate land het nou die Here se tuin geword!’ Die stede wat bouvalle is, sal dan weer veilig wees vir al die mense wat daarin woon. Dan sal al die nasies wat nog om julle bly, weet en erken dat Ek, die Here, die bouvalle weer opgebou het. Hulle sal weet dat dit Ek is wat landerye in die woestyn gemaak het. Want Ek, die Here, het belowe dat Ek dit sal doen. En Ek gaan dit doen!” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek staan reg om na Israel se gebede te luister as hulle My vra dat Ek al hierdie dinge vir hulle doen. Ja, Ek wil graag doen wat hulle vir My vra. Ek sal die mense in hierdie land so baie laat word soos die skape en beeste in Jerusalem as daar ’n groot fees aan die gang is. Die stede wat nou net bouvalle is, sal vol mense wees soos voorheen. En almal sal erken dat Ek die Here is.” Die Here het Hom hierna weer op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Die Here se Gees het my weggeneem, en ek het by ’n laagte gaan staan. In die laagte het daar baie bene van mense rondgelê. Die Here het my toe om die bene laat loop. Dit was ou, uitgedroogde bene. Die hele leegte was vol daarvan. Oral op die grond het daar net bene gelê. Toe vra die Here vir my: “Mens, kan hierdie bene weer lewendig word? Kan daar lewendige mense uit hierdie bene kom?” “Here, my God, U alleen weet wat die antwoord daarop is,” het ek geantwoord. Toe sê die Here vir my: “Praat met die bene, Esegiël. Sê vir hierdie bene: Droë bene, luister as die Here met julle praat! So sê die Here, Esegiël se God, vir hierdie bene: Kyk mooi! Ek gaan asem in julle inblaas. Dan sal julle weer lewendig word. Dan sal Ek vleis en spiere om julle sit. En dan sal Ek vel om julle sit. Ek blaas asem in julle. Julle sal lewendige mense word. En dan sal julle weet dat Ek die Here is.” Ek het toe met die bene gepraat, net soos die Here vir my gesê het. Die volgende oomblik, terwyl ek nog praat, was daar ’n groot geraas. Oor die hele vallei het die bene begin raas soos dit teen mekaar gekap en geskuur het. Die bene het elkeen beweeg na die ander bene van dieselfde liggaam. En liggame se bene het só by mekaar uitgekom. Terwyl ek nog kyk, het vleis en spiere gevorm wat om die bene gaan sit het. Toe het vel bo-oor elke liggaam gevorm. Maar al die liggame het leweloos op die grond bly lê. Toe sê die Here vir my: “Praat met die wind. Sê: So sê die Here, die God van Esegiël: Kom, wind, kom uit die vier rigtings van die aarde! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewendig kan word!” Ek het gedoen soos die Here my beveel het. Die volgende oomblik het die wind oor die liggame gewaai, en die liggame het begin asemhaal. Hulle het almal lewendig geword. Die skare liggame wat lewendig geword het, het op hulle voete gaan staan. Toe sê die Here vir my: “Mens, Israel is soos hierdie bene. My volk sê: ‘Ons het soos ou, droë, dooie bene geword. Ons het geen hoop in die lewe meer oor nie!’ “Sê nou vir my volk die Here, die God van Esegiël, sê: My volk, Ek haal julle uit die graf waarin julle beland het toe julle as gevangenes weggevoer is na vreemde lande. Dit sal wees asof Ek julle uit die dood laat opstaan. Want Ek sal julle daar gaan haal en terugbring na julle eie land. Julle sal weer in Israel bly. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die Here is, my volk. Dan sal my Gees die wind wees wat Ek oor julle laat waai. Julle sal weer lewe en terugkom huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, as julle sien dat Ek alles presies gedoen het soos Ek belowe het.” Dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Die Here het toe verder met my gepraat. “Mens, vat ’n stuk hout. Kerf dan hierdie woorde daarop: Hierdie stok is Juda en al die stamme wat saam met hom werk. Vat dan ’n ander stok en kerf daarop: Hierdie stok is die stamme van die noordelike ryk van Israel. Hou nou albei hierdie stokke saam in jou hand. Gebruik hulle as een stok. Wanneer jou mense vir jou vra wat jy doen en wat dit beteken, moet jy vir hulle verduidelik: So sê die Here, Esegiël se God: Ek gaan die noordelike stamme van Israel vat en hulle by Juda sit. Ek maak hulle een stok in my hand. “Hou dan die stokke waarop jy gekerf het, so dat jou mense dit kan sien. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê só: Ek gaan die mense van Israel haal waar hulle tussen ander nasies bly. Ek gaan hulle huis toe bring, want Ek gaan hulle self haal waar hulle nou in vreemde lande bly. Dan sal Ek Israel en Juda weer een nasie maak. Hulle was voorheen twee volke, maar nou sal hulle net een koning hê wat oor hulle regeer. Hulle sal nie meer twee nasies wees wat in twee lande bly nie. Dan sal my volk ophou om voor afskuwelike afgode te buig. Hulle sal nie meer slegte dinge doen nie, want Ek sal hulle red van hulleself. Ek sal hulle weer nuut maak. Dan sal hulle werklik my volk wees. En Ek sal hulle God wees. “Dan sal iemand oor hulle heers wat so goed sal wees soos koning Dawid. Hierdie koning sal My dien en aanbid. Hy sal vir hulle soos ’n goeie skaapwagter wees. En my volk sal doen wat Ek hulle beveel. Hulle sal gehoorsaam wees aan wat Ek vir hulle sê. Hulle sal in die land bly wat Ek vir hulle oupagrootjies gegee het, vir Abraham en Isak en Jakob. Hulle sal daar bly, so ook hulle kinders en hulle agterkleinkinders. ’n Goeie koning soos Dawid sal oor hulle regeer, en dit sal goed gaan. Ek sal ’n ooreenkoms met hulle sluit wat vir altyd geldig sal wees. My deel van die ooreenkoms sal wees dat Ek vir hulle die land van hulle oupagrootjies sal teruggee. En Ek sal sorg dat dit met hulle goed gaan sodat hulle hulle kinders en kleinkinders sien. Ek sal my huis weer daar laat bou tussen hulle, en dit sal vir altyd daar wees in hulle land. Ek sal tussen hulle bly, in my huis. Ek sal hulle God wees. En hulle sal my volk wees. Omdat my huis dan tussen hulle is en Ek tussen hulle bly, sal al die nasies agterkom dat Ek, die Here, Israel eenkant gesit het om aan My te behoort en vir My te werk.” Die Here het met my gepraat en vir my gesê: “Mens, kyk na die kant toe daar waar Gog en Magog regeer. Gog en Magog regeer oor die mense van Mesek en Tubal. Sê vir hierdie koning die Here, die God van Esegiël, sê oor hom: Ek is jou vyand, Gog! Ek het My vir jou vererg. Daarom gaan Ek jou omdraai en hake in jou kakebeen indruk sodat Ek jou kan gaan verwoes. En nie net vir jou nie. Ek doen dit ook met al jou soldate en hulle perde. Jou soldate sal al hulle wapens aan hulle lywe hê daardie dag as Ek jou bykom en vernietig. Persië, Etiopië en Libië sal ook by jou staan, hulle en hulle soldate met al hulle wapens. So ook Gomer met al sy soldate en Bet-Togarma met al sy soldate, daar uit die land daar ver in die noorde. Baie ander sal ook regstaan vir die oorlog as Ek hulle verwoes. “Maak jou gereed! Berei jou voor vir die oorlog! Sorg dat elke soldaat op sy pos is en dat almal hulle wapens by hulle het! Laat die konings saam met hulle soldate regstaan! Iewers in die verre toekoms sal Ek jou beveel om na Israel toe te gaan. Daardie land sal pas net herstel het na ’n lang oorlog wat alles in die land vernietig het. Israel sal dan pas teruggekeer het van die vreemde lande waar hulle as gevangenes gehou is. En hulle sal in vrede in hulle eie land leef. Dan sal jy op hulle afstorm soos ’n donker wolk. Jy sal saam met al jou bondgenote en al hulle soldate op Israel afkom soos ’n storm. Israel sal baie bang vir julle wees.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle sal slegte planne beraam teen my volk. Julle sal sê: ‘Israel kan homself nie beskerm nie. Sy stede word nie deur hoë mure omring nie, en die inwoners kan maklik doodgemaak word. Ek sal teen die land optrek en maklik al die mense in die land kan doodmaak. Hulle leef asof niks hulle kwaad kan aandoen nie. Ek sal maklik hulle land vir my vat! Dan sal ek teen die stede optrek wat lank sonder inwoners was, maar nou vol mense is. Die mense wat daarin bly, het teruggekom na hulle eie land nadat hulle gevangenes in die vreemde was. Ek sal die Israeliete se besittings vir myself vat. En ek sal die mense as gevangenes vir myself vat. Hulle sal vir my moet werk. Daardie land se mense het baie skape en beeste wat ek vir myself kan vat. Daardie land se mense dink mos hulle is belangrik!’ “Dan sal die mense van Skeba, Dedan en die mense wat besigheid in Tarsis doen, vir jou vra: ‘Hoekom het jy daardie land se besittings vir jouself gevat? Wie is jy dat jy die mense van hulle geld en besittings kan beroof? Wie is jy om hulle skape en beeste na jou eie land terug te jaag? Hoe kan julle hierdie mense arm maak?’ “Daarom, hoor wat die Here vir Gog sê. So sê die Here, die God van Esegiël: My volk sal in vrede in hulle eie land woon. Dan sal jy gereedmaak om hulle aan te val. Jy sal kom met al jou soldate en hulle perde en hulle wapens. Jy sal ’n baie groot weermag saam met jou bring. As julle hier aankom, sal dit lyk of ’n wolk oor die land getrek het, so baie sal julle wees. Dit sal iewers in die toekoms gebeur. Ek laat julle teen my land optrek. Die hele wêreld sal kyk terwyl dit gebeur. En dan sal Ek julle wys wie Ek is. Jy sal My leer ken uit wat Ek met jou gaan laat gebeur. Hierna sal al die nasies erken dat Ek die Here is.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek het lank terug al oor jou gepraat. Toe het Ek vir my volk deur die boodskappers wat Ek na hulle toe gestuur het, gesê dat Ek jou teen my land en my volk sal laat optrek. “Daardie dag as Gog die land binneval, sal Ek woedend word,” sê die Here. “Ek sal jaloers wees op my volk. En Ek sal kwaad wees vir jou, Gog. Die land sal skud asof ’n aardbewing hom getref het as Ek met jou afreken. Alles wat lewe - selfs die visse, en al die voëls en diere en mense - sal daardie dag bewe van skrik. Want julle sal My sien. Die berge sal platgevee word. Die rotse sal verkrummel. Mure sal omval voor My. Jou soldate sal mekaar begin aanval en doodmaak, so deurmekaar sal dit wees. Ek sal jou en jou soldate straf. Julle sal deur oorlog en siekte doodgemaak word. Ek stuur swaar reën en haelstene en vuur en brandende swael om julle te straf. Só sal Ek Myself aan die nasies bewys as die sterke God. Al die nasies sal My dan raaksien. Hulle sal weet dat Ek die Here is.” “Mens, sê vir Gog die Here, Esegiël se God, sê: Ek het jou vyand geword. Jy regeer oor Mesek en Tubal. Ek draai jou om sodat jy in ’n ander rigting sal loop. Ek dryf jou na die berge van Israel. Ek lei jou uit jou land uit sodat jy in Israel se land aankom. Daar slaan Ek jou wapens uit jou hande uit. Jy sal hulpeloos daar staan. Jy en al jou soldate sal daar, op die berge van Israel, doodgemaak word. Ek gee julle lyke vir die aasvoëls en die wilde diere. Hulle sal julle lyke opvreet. Ja, julle lyke sal oral rondlê, ook op die oop veld. Dan sal Ek vuur laat val op die mense van Magog en op al sy bondgenote wat veilig by die huis agtergebly het, daar langs die kus. Hulle sal ook weet dat Ek die Here is. “So sal Ek Myself aan die mense van Israel bekendmaak. Hulle sal goed verstaan wie Ek is. En hulle sal niks meer doen wat My beledig nie. Al die nasies sal dan ook weet dat Ek die Here is. Ek is Israel se God, die Een wat alles kan doen. “Ja, wat Ek sê, gaan gebeur. Alles sal presies gebeur soos Ek gesê het. Ek sal julle straf vir julle slegte dade. Die dag as dit gebeur, sal die mense in die stede van Israel rondloop. Hulle sal al die wapens van hulle vyande bymekaarmaak. Dan sal hulle dit gebruik om mee vuur te maak. Daar sal genoeg wapens wees sodat hulle vir sewe jaar daarmee sal kan vuur maak! My volk sal nie meer nodig hê om in die veld rond te loop en hout te soek nie. Hulle sal nie meer bome afkap of takke afsaag waarmee hulle vuur kan maak nie. Hierdie wapens sal genoeg hout wees om mee vuur te maak, so groot sal die verwoesting wees wat Ek onder julle vyande sal bring. Julle sal die besittings van julle vyande vir julleself vat. Dit is die einste vyande wat gekom het om Israel se besittings vir hulleself te vat,” sê die Here, die God van Esegiël. “Dan maak Ek ’n groot begraafplaas waar Gog en al sy soldate begrawe kan word. Die begraafplaas sal in die Vallei van Reisigers wees, oos van die Dooie See. Mense wat daarlangs verbytrek, sal ’n ompad moet kies, so groot sal die begraafplaas wees. Hulle sal die naam van die vallei verander sodat mense daarvan sal praat as die Vallei van Gog se Horde Soldate. Daar sal so baie lyke wees dat dit die mense van Israel sewe maande lank sal vat om almal te begrawe. Elkeen in die land sal moet help. Israel gaan vir lank feesvier die dag as Ek hulle vyande voor die voet doodmaak. Daardie dag gaan Ek vir Israel wys wie Ek is, en hoe sterk Ek is,” sê die Here. “As die sewe maande verby is, sal spesiale spanne aangestel word wat deur die land gaan. Hulle werk sal wees om te soek of daar nie nog geraamtes agtergebly het van soldate wat in die oorlog dood is nie. Hulle sal al die geraamtes wat hulle kry, begrawe. So moet my land weer skoongemaak word. As hulle ’n geraamte kry, sal hulle ’n merk daar regop sit. Agter hulle sal die begrafnisondernemers kom. As hulle êrens ’n merk sien, sal hulle die geraamte daar wegvat. Hulle sal elke geraamte in die Vallei van Gog se Horde Soldate gaan begrawe. Naby die begraafplaas sal ’n dorp ontstaan. Hulle sal die dorp vernoem na die horde soldate wat daar begrawe is.” “Roep nou eers al die voëls en die wilde diere bymekaar,” sê die Here, die God van Esegiël. “Sê vir hulle: Kom bymekaar! Ek maak vir julle ’n groot ete reg! Julle gaan feesvier! Kom van oor die hele land, van die ooste tot die weste. Kom na die berge toe. Daar gaan vir julle genoeg vleis wees om te eet en genoeg bloed wees om te drink! Kom eet die vleis van sterk soldate. Drink die bloed van die leiers van volke. Ek maak hierdie mense soos vet diere wat gevrek het. Julle kan hulle kom opvreet. Kom vreet tot julle nie meer kan nie. Kom drink bloed tot julle dronk is daarvan. Ek het hierdie fees vir julle gereedgemaak. Kom vreet die perde en hulle ruiters en al die sterk en dapper soldate. Kom vreet tot julle genoeg het,” sê die Here, die God van Esegiël. “So wys Ek vir die nasies wie Ek is, en hoe sterk Ek is. Hulle sal sien wat gebeur as Ek mense straf. Hulle sal voel hoe dit is as Ek, die sterk God, mense verwoes. Daarna sal Israel ook baie goed verstaan wie Ek is. Hulle sal sien wat Ek doen as Ek kwaad word. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is. “Dan sal die nasies ook verstaan hoekom Ek toegelaat het dat vyande my volk as gevangenes wegvoer om in vreemde lande te gaan bly. Dit is hoe Ek hulle vir hulle sonde gestraf het. Hulle het nie gedoen wat Ek hulle beveel het nie. Daarom het daar ’n dag gekom dat Ek my rug vir hulle gedraai het. Toe het Ek toegelaat dat hulle vyande hulle doodmaak en verwoes. Ek het nie meer na hierdie volk gekyk nie. Ek het hulle gestraf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle straf het ooreengestem met die slegte dinge wat hulle gedoen het.” Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sal my volk terugbring van waar hulle nou as gevangenes in ’n ver en vreemde land sit. Ek sal hulle weer goed behandel. Ek sal hulle nie verder straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het nie. Want Ek moet my Naam beskerm voor mense wat sleg praat en sê Ek kan nie behoorlik sorg vir die volk wat Ek uitgekies het nie. Hulle sê dit omdat my volk as gevangenes weggevat is uit hulle eie land. My volk sal dan sê: ‘Ons het al die slegte dinge gedoen wat die Here ons beveel het om nie te doen nie. Ons was opstandig teen die Here. Ons het ons nie aan Hom gesteur nie.’ “Ek sal my volk terugbring huis toe. Dan sal hulle veilig en gelukkig in hulle eie land leef. Niemand sal hulle ook weer pla of hulle lewens in gevaar stel nie. Hulle sal vir niks en niemand bang wees nie. Daardie dag as Ek hulle terugbring uit die lande van hulle vyande waar hulle nou gevangenes is, sal Ek vir die nasies wys hoe sterk Ek is. Hulle sal dit sien as hulle kyk hoe Ek my volk terugbring na hulle eie land. Dan sal my volk ook besef dat Ek die Here is. Hulle sal sien dat dit Ek was wat hulle as gevangenes laat weglei het na vreemde lande. En dat dit Ek is wat hulle ook weer terugbring na hulle eie land. Ek sal niemand van my volk laat agterbly in die vreemde land waar hulle nou as gevangenes bly nie. Ek sal ook nooit weer my rug vir hulle draai nie. Nee, Ek sal my Gees in hulle gee,” sê die Here, die God van Esegiël. Op die 28ste April 573 v.C. het die Here Homself op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Ons was toe al 25 jaar lank gevangenes in ’n vreemde land. Dit was veertien jaar nadat Jerusalem deur ons vyande met die grond platgevee is. Die Here het aan my verskyn. Hy het my toe na Israel toe gevat. Ek het gesien hoe Hy my op ’n baie hoë berg neersit. Van daar af kon ek ’n stad sien wat ’n ent daarvandaan was, so na die suidekant toe. Soos Hy my nader gebring het, het ek ’n man gesien wat langs ’n ingangshek na die stad toe gestaan het. Wanneer die lig daarop skyn, het hierdie man se gesig geblink asof dit van brons gemaak is. Hy het ’n liniaal en ’n tou in sy hande gehad. Hierdie man sê toe vir my: “Mens, jy moet baie mooi kyk na wat nou voor jou oë gaan afspeel. En jy moet mooi luister. Jy is hiernatoe gebring sodat ek jou ’n hele klomp dinge kan wys. Dan moet jy teruggaan na Israel en hulle presies gaan vertel wat jy alles gesien het.” Ek sien toe ’n muur wat reg rondom die huis van die Here gebou is. Die man het sy liniaal gevat. Die liniaal was drie meter lank. Hy meet toe die muur om die huis van die Here met sy liniaal. Die muur was presies drie meter lank en ook drie meter dik. Toe het die man na die hek aan die oostekant van die huis van die Here gegaan. Hy het met die trap opgeklim en toe meet hy die drumpel. Dit was ook drie meter breed. Binne-in die poort was daar plek waar die wagte kon sit, aan weerskante van die ingang. Elke vertrek waar die wagte gesit het, was drie meter by drie meter groot. Die muur tussen die twee vertrekke was twee en ’n half meter dik. Aan die binnekant was daar ’n opening waardeur ’n mens in die huis van die Here kon ingaan. Die begin van die portaal was ook drie meter wyd. Die man het dit gemeet en gesien dat dit drie meter breed was. Daarna het hierdie man ook die opening gemeet waardeur ’n mens ingaan na die huis van die Here se terrein. Dit was vier meter by vier meter, en die muur was ’n meter dik. Aan weerskante van hierdie vertrek was daar drie kamers. Hierdie kamers was ewe groot. Die mure tussen die kamers was ewe dik. Die man het toe ook hierdie opening gemeet. As die hek oop was, was die ingang vyf meter breed. Die volle lengte van die opening was ses en ’n half meter wyd met die hek toe. Voor die kamers aan die kante was daar afskortings. Hulle was elkeen ’n halwe meter dik. Die kamers was drie meter by drie meter. Toe het die man ook die wydte van die hele gebou gemeet waardeur ’n mens gaan as jy in die huis van die Here se terrein wil kom. Dit was van die kamers aan die een kant tot by die kamers aan die ander kant. Die afstand was twaalf en ’n half meter. Die kamers se ingange was regoor mekaar. Die man het toe ook die opening gemeet waardeur ’n mens gaan. Die afstand van die opening tot agter die gebou waardeur ’n mens moet gaan, was 30 meter. Hy het ook die afstand gemeet van voor die opening tot by die buitenste gebou, en dit was 25 meter. Agter in die kamers was daar vensters gebou wat met houthortjies toegemaak het. In die opening was daar ook vensters. Teen die mure van al hierdie vertrekke het mense prente van palmbome geteken. Toe vat die man my na die buitenste opening waardeur ’n mens gaan. Rondom hierdie opening was daar ook vertrekke. Die vloer was van plaveiselstene. Daar was 30 vertrekke. Die plaveiselstene was aan weerskante van die opening, en hulle was net so breed as wat hulle lank was. Hierdie plaveiselstene was aan die onderkant van die vertrek. Die man het toe die afstand gemeet van die voorkant van die eerste opening en die voorkant van die ingang. Dit was 50 meter aan die een kant en 50 meter aan die ander kant. Daarna het hy ook die lengte en breedte gemeet van die ingang aan die buitekant, die ingang wat na die noordekant kyk. Hierdie ingang het drie kamers aan elke kant gehad. Die afmetings was dieselfde as die afmetings van die ander kamers. Hierdie ingang was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. Sy vensters en ingang en die tekeninge van palmbome het nes dié gelyk van die ander ingang. ’n Mens moes ses trappe klim om hierdie ingang te bereik. Agter was nog ’n ingangsportaal. Daar was ook ’n gebou regoor die binneste ingang, teenoor die ingang aan die noordekant. Dit het net so gelyk soos die ingang aan die oostekant. Die man het toe die afstand tussen die twee ingange gemeet. Dit was 50 meter. Daarna vat die man my na die suidekant toe. Hier was ook ’n ingang met net sulke geboue as by die ander twee ingange. Die man het hulle ook gemeet, en dit was presies dieselfde as die ander geboue. Ook hier was vensters, en die opening was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. Daar was ook sewe trappe wat jy moet opklim om by die ingang te kom. En agter was ook ’n ingangsportaal. Teen die mure was daar ook prente van palmbome. Aan die suidekant was daar ook ’n ingang met ’n gebou teen die huis van die Here se kant. Die man het die afstand tussen die buitenste ingang en die binneste ingang gemeet. Dit was 50 meter. Daarna het hy my na die binneste ingang van die suidelike toegang geneem. Hy het hierdie opening gemeet. Dit was dieselfde as die ander ingange tot die huis van die Here se terrein. Ook die kamers aan die kante en die ingangsportaal was presies net so groot soos die ander ingange tot die huis van die Here se kamers en portale. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters in gehad, en dit was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. Elke ingang het ’n ingangsportaal gehad na die binneste opening toe. Hierdie portaal was twaalf en ’n half meter lank en twee en ’n half meter wyd. Die ingang het ook ’n ingangsportaal na die buitekant gehad. Daar was tekeninge van palmbome teen die mure. En daar was agt trappe wat jy moes opklim om by die ingang uit te kom. Daarna het die man my na die oostekant toe geneem, na die ingang daar. Hy het hierdie ingang gemeet. Dit was net so groot soos die ander ingange. Die kamers en die mure en die ingangsportaal was ook net so groot soos in die ander ingange. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters gehad. Dit was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. Die gebou het ook ’n ingangsportaal na die buitekant toe gehad. Teen die mure was daar tekeninge van palmbome. ’n Mens moes agt trappe klim om by die ingang te kom. Daarna het die man met my na die noordekant toe gegaan en dit gemeet. Dit was presies net soos die ander drie ingange. Daar was ook kamers en mure en ingangsportale, en vensters reg rondom. Die gebou was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. Sy ingangsportaal was na die buitekant toe, met palmbome teen die mure geverf en agt trappe waarteen jy moet opklim. Daar was ’n ekstra vertrek wat hier gebou is met ’n opening na die ingangsportaal. Hier is die brandoffers afgespoel wat op die altaar verbrand is. In die ingangsportaal was daar twee tafels aan weerskante teen die muur. Hierop is die diere geslag wat verbrand word sodat die Here mense se slegte dade kan vergewe. Buitekant die ingangsportaal was daar ook twee tafels, en aan die ander kant van die ingangsportaal ook. So was daar agt tafels in totaal. Die diere wat geoffer word, is hier afgeslag. Daar was ook vier tafels wat van klip gemaak is. Elkeen van dié tafels was ’n driekwart meter by ’n driekwart meter en ’n half meter hoog. Bokant die tafels was daar rakke. Hier is die messe en ander gereedskap gebêre waarmee die diere afgeslag is. Buite die ingangsportaal was kamers waar die mense kon bly wat in die huis van die Here musiek gemaak het. Die vertrekke was by die ingang aan die noordekant en het suid gekyk. Teen die ingang aan die oostekant was daar ook ’n kamer, wat noord gekyk het. [45-46] Die man het toe vir my verduidelik: Die vertrek wat suid kyk, is daar sodat die mense wat in die huis van die Here werk, daarin kan bly. Dis net bedoel vir mense wat in die huis van die Here werk. Slegs hulle wat kleinkinders van Levi is, mag in die huis van die Here werk. *** Die man het toe die voorste deel van die huis van die Here gemeet. Dié vertrek was 50 meter by 50 meter. Die altaar waarop die offers gebring is, was voor die huis van die Here. Daarna het die man die mure aan weerskante van die voorste deel van die huis van die Here gemeet. Hulle was twee en ’n half meter lank. Die ingang tot die voorste deel was tien meter lank en ses meter breed. ’n Mens kon die ingang bereik deur tien trappe te klim. Aan weerskante van die ingang was daar ’n pilaar teen elke muur. Hierna het die man my in die huis van die Here ingeneem, in die groot vertrek waar slegs die mense wat in die huis van die Here werk, mag kom. Hy het toe die mure aan weerskante van die ingang van die huis van die Here gemeet. Hulle was drie meter dik. Die ingang self was vyf meter wyd, en die mure aan weerskante van die ingang was twee en ’n half meter lank. Hierdie groot vertrek was twintig meter lank en tien meter breed. Die man het toe in hierdie vertrek ook die mure aan weerskante van die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang was drie meter wyd en die mure aan weerskante van die ingang was drie en ’n half meter lank. Hy het ook die volgende vertrek gemeet. By daardie vertrek mag niemand ingaan nie. Dit is daar waar die Here bly. Die lengte van hierdie vertrek en sy breedte was tien meter. Die man het toe vir my gesê: “Hier bly die Here. Hier is die stoel waarop Hy sit.” Hy het ook die muur van die huis van die Here gemeet. Dit was drie meter dik. Buite-om die huis van die Here was daar kamers aangebou. Hulle was twee meter breed. Hierdie kamers het elk drie verdiepings gehad. Op elke vloer was tien kamers; 30 kamers in totaal. Die muur waarop hierdie kamers gebou was, was vir elke verdieping dunner as op die vloer daaronder. Dit het veroorsaak dat die verdiepings nie in die muur van die huis van die Here ingebou was nie, maar dat daar ’n afsonderlike muur was waarop die kamers gerus het. Die huis van die Here se gebou was rondom toegebou tot heel bo. En die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar was trappe van die onderste verdieping af na die boonste toe. Ek het gesien dat die huis van die Here se gebou hoër was as die ander gebou met die kamers wat rondom die huis van die Here was. Die fondamente van die kamers was ook drie meter hoog. Die muur van die kamers was aan die buitekant twee en ’n half meter breed. Daar was ook ’n oop area tussen die kamers en die huis van die Here. Die kamers rondom was tien meter wyd. Die ingange na die kamers toe het van die oop area na binne gelei. Daar was ’n ingang na die kamers aan die noordekant en een aan die suidekant. Die oop area was twee en ’n half meter breed. Aan die westekant van die huis van die Here was daar nog ’n gebou. Hierdie gebou was 35 meter breed en 45 meter lank, en sy muur was twee en ’n half meter dik. Die man het eers die huis van die Here klaar gemeet. Dit was 50 meter lank. Daarna het hy die area agter die huis van die Here gemeet, en ook die westelike gebou met sy mure. Die lengte was ook 50 meter. Voor die huis van die Here, aan die oostekant daarvan, was die oop area 50 meter wyd. Daarna het die man die gebou aan die westekant agter die huis van die Here gemeet. Hy het ook die gange weerskante van die gebou gemeet. Die afstand was 50 meter. Ek het ook gesien dat al die vertrekke in die huis van die Here, asook die ingang tot die huis, die drumpels van die deure, die vensters en die gange rondom, alles met hout oorgetrek was. Van die grond af tot by die vensters was alles met hout oorgetrek. Die vensters was ook van hout. Nog iets het my opgeval. Oral was daar tekeninge van boodskappers van die Here en palmbome. Daar was bokant die ingang en teen die huis van die Here aan die binnekant en buitekant, en teen al die mure rondom aan die binnekant en buitekant sulke tekeninge. Tussen elke tekening van ’n boodskapper van die Here was daar palmbome geteken. Elke boodskapper van die Here is met twee gesigte geteken. Aan die een kant was daar ’n gesig soos ’n mens s’n, en aan die ander kant ’n gesig soos dié van ’n leeu. Die hele huis van die Here was so versier, met dieselfde tekeninge. Daar was sulke sketse van die grond af tot bokant die ingang, tekeninge van die boodskappers van die Here en palms. Selfs teen die muur van die voorste vertrek waar die Here self gebly het, was daar sulke tekeninge. Die deurkosyn van die voorste vertrek van die huis van die Here was vierkantig; so ook die deur wat na die agterste vertrek gelei het waar die Here gesit het. Die altaar in die voorste vertrek was van hout gemaak. Dit was een en ’n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante was van hout. Die man het vir my gesê: “Hierdie tafel staan heeltyd in die teenwoordigheid van die Here.” Daar was ’n deur wat kon toemaak by die voorste vertrek en ook by die agterste vertrek waar die Here gebly het. Die deur was ’n swaaideur. Ook op hierdie swaaideure was daar tekeninge van boodskappers van die Here en van palmbome, net soos op die mure. Voor die ingang by die huis van die Here, aan die buitekant, was daar ’n afdak van hout. Aan weerskante was daar vensters wat hortjies voor gehad het. Ook teen hierdie mure was daar versierings van palmbome. Die kamers wat rondom die huis van die Here was, is ook met tekeninge versier. Toe het die man my buitetoe gebring. Ek het buitekant die huis van die Here gaan staan, aan die noordekant. Die man wys my toe ’n kamer wat teenoor die huis van die Here gebou is, noord van die gebou. Die lengte van hierdie gebou was 50 meter en die breedte 25 meter. Die gebou se grens was teenaan die binneste ingangsportaal van die huis van die Here aan die een kant en die buitenste ingangsportaal aan die ander kant. Die gebou het drie terrasse, en elkeen is hoër as die vorige een. Voor elke ry kamers was daar ’n gang wat vyf meter breed en 50 meter lank was. Die ingange van die gange was aan die noordekant. Die kamers bo was kleiner as dié wat onder was. Die boonste kamers was kleiner as die kamers net daaronder. Die kamers was in drie verdiepings gebou. Hulle het nie op pilare gerus soos die ander kamers nie. Daarom was die boonste kamers kleiner as dié reg onder hulle. Daar was ’n muur voor hierdie gebou al langs die buitekant. Die muur was 25 meter lank. Die lengte van die kamers was teen die een kant 25 meter, maar aan die kant van die huis van die Here was dit 50 meter. Die toegang na die onderste kamers toe was aan die oostekant. Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste ingang, aan die suidekant teen die oop area voor die huis van die Here. Daar was kamers teen die muur met ’n gang voor hulle net soos voor die kamers aan die noordekant. Die kamers was net so lank en so breed as dié aan die noordekant, en hulle afmetings was net soos dié van die kamers aan die noordekant. Daar was ook ’n ingang aan die punt van die gang, aan die oostekant wanneer ’n mens ingaan. Die man het vir my gesê: “Niemand mag in hierdie kamers noord en suid van die oop area voor die huis van die Here kom nie. Dit is slegs daar vir die mense wat in die huis van die Here werk. Net hulle mag dit gebruik. Dit is hulle eetplek. Daar sit hulle die offers neer wat hulle op die altaar bring, offers van meel en ander offers wat hulle bring om mense se slegte dade vergewe te kry. Niemand mag hier kom wat nie hier hoort nie. Wanneer die mense wat hier werk, hier ingekom het, mag hulle nie weer hier uitgaan na die buitenste ingang nie. Hulle moet eers die klere waarin hulle gewerk het, uittrek. Selfs die klere wat hulle gedra het, mag slegs in die diens aan die Here gebruik word. Hulle moet eers ander klere aantrek. Daarna kan hulle na die ander plekke toe gaan wat vir die ander mense bedoel is.” Die man was toe klaar met sy afmetings van die huis van die Here se binnekant. Toe het hy my by die hek van die huis van die Here uitgeneem wat oos gekyk het. Ek het gesien dat hy die mure buite-om die huis van die Here meet. Eers het hy die oostekant gemeet. Die muur hier was 250 meter lank. Toe meet hy die muur aan die noordekant, en dit was ook 250 meter lank. En toe meet hy die muur aan die suidekant, en dit was ook 250 meter lank. Daarna het hy omgegaan na die westekant toe en die muur daar gemeet, en dit was ook 250 meter. Hy het die muur rondom gemeet aan al vier kante. Die lengte was 250 meter en die breedte 250 meter. Die muur was die grens tussen die area wat aan die huis van die Here behoort het en die wêreld daarbuite. Toe het ek saam met die man teruggeloop na die ingang aan die oostekant van die huis van die Here. Die volgende oomblik het die Here daar aan ons verskyn. Uit die oostekant uit het die God van my volk Hom op ’n spesiale manier aan ons bekendgemaak. Toe die Here praat, het dit geklink soos groot riviere wat oor hulle walle stroom. Hy het soos ’n helder lig, soos die son, geskyn. Alles was verlig rondom ons. Wat ek hier van Hom gesien het, was dieselfde as daardie dag toe Hy my die opdrag gegee het om aan te kondig dat Jerusalem verwoes gaan word. Dit was ook dieselfde as wat ek langs die Kebarrivier gesien het. Ek het op my gesig voor die Here neergeval. Toe het die Here deur die oostelike ingang in sy huis ingegaan. Dit was of die Gees van die Here my optel en my saamvat. Die volgende oomblik het ek in die voorste deel van die huis van die Here gestaan. Die hele huis was vol van die Here se teenwoordigheid. Die man wat die huis van die Here gemeet het, het langs my gestaan. Toe hoor ek Iemand praat met my. Dit was die Here self. Hy het vir my gesê: “Mens, hierdie huis is waar Ek bly. Ek sit hier en regeer oor die aarde. Hier sal Ek altyd teenwoordig wees tussen die Israeliete. Hierdie volk en die mense wat oor hulle regeer, sal nie weer slegte dade pleeg nie. Hulle sal nie meer voor afgode buig nie. En hulle sal ook nie weer hulle konings hier in my huis begrawe ná hulle dood en dan nog vir hulle grafstene in my huis oprig nie. Die konings was so verwaand dat hulle hulle blyplek reg langs my huis gebou het. Daar was net ’n muur tussen my huis en hulle huis. En dan het hulle die afskuwelikste dinge gedoen hier reg voor My! Daarom het Ek vir hulle kwaad geword en hulle gestraf. Nou bestaan hulle nie meer nie. Ek het hulle vernietig. As hierdie volk ophou om voor afgode te buig en hulle vat al die lyke van hulle konings uit my huis uit, sal Ek weer tussen hulle woon. “Gaan vertel vir jou volk hoe die huis van die Here lyk. Dalk kry die volk skaam as hulle hoor hoe sleg dit hier in my huis gaan. Wys hulle op ’n plan van die huis van die Here hoe dit hier lyk. En as hulle dan skaam kry, vertel hulle hoe Ek my huis wil laat lyk. Vertel hulle van die ingange en uitgange van die gebou en die kamers en alles wat Ek hier wil doen. Skryf dit alles op sodat hulle nie sal vergeet nie. Hulle moet die binnekant van die huis van die Here leer ken en weet hoe ’n mens moet optree as jy in my huis kom. Hulle moet doen wat Ek hulle beveel. Wat hulle moet weet, is dat die hele area waar my huis staan, op die top van die berg en die gebied daar rondom, opsy gesit is vir spesiale diens aan My. Daar mag ’n mens slegs met die dinge van die Here besig wees.” So lyk die altaar. Rondom die altaar was ’n voor waarin water kon wegloop. Hierdie voor was ’n halwe meter diep en net so breed. Sy rand rondom was ’n kwart meter breed. Die altaar was van die voor af na die onderste vlak ’n meter hoog. Hierdie onderste vlak was ’n halwe meter wyer as die volgende vlak. Van die onderste na die boonste vlak was die hoogte twee meter. Die heel boonste vlak was ’n halwe meter wyer as die plek waar vuur gemaak word. Die plek waar vuur gemaak word, is twee meter hoog. Op die vier hoeke was daar punte wat soos ’n bees se horings gelyk het en boontoe gewys het. Die plek waar die vuur gemaak word, is vierkantig en was ses meter in deursnee. Die heel boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter in deursnee. Die voor wat die water weglei, het ’n rand wat ’n kwart meter breed is en ’n halwe meter diep. Die trap waarteen ’n mens opklim na die altaar, is aan die oostekant daarvan. Toe sê die man met die liniaal vir my: “Mens, die Here my God sê dat jy vir die volk moet sê die dag as hierdie altaar klaar gebou is, moet die mense wat in my huis werk, ’n bul daarop offer vir al die slegte dade wat hulle gedoen het. Net hierdie mense, die kleinkinders van Sadok, mag by die altaar kom. Net hulle mag hier werk, sê die Here, Esegiël se God. Hulle moet van die bul se bloed vat en aan die vier horings van die altaar smeer. Ook aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar moet jy bloed smeer, en teen die sykante daarvan reg rondom. So maak jy die altaar skoon en mag jy daarop offers vir My bring. As jy klaar is hiermee, moet jy die bul verbrand. Daar is ’n spesiale plek hiervoor buitekant my huis. Die volgende dag moet jy ’n bokram wat nie sieklik of gebreklik is nie, offer vir die slegte dade wat julle gedoen het. Dan moet jy weer die bloed aan die altaar smeer net soos die vorige dag. As jy klaar is hiermee, moet jy ’n bul en ’n ram as offers bring. Hulle mag nie gebreklik wees nie. Die mense wat hier werk, moet sout op die vleis gooi. Dan moet hulle dit voor My offer. So moet jy sewe dae lank elke dag ’n bok- en ’n skaapram verbrand vir die slegte dade wat julle gedoen het. Hulle mag nie gebreklik wees nie. Sewe dae lank moet jy dit doen sodat die altaar daarna gereed kan wees om in my huis gebruik te word. Hierdie altaar mag slegs vir diens aan My gebruik word. Hierna, van die agtste dag af, mag die mense wat hier werk, ook ander offers bring. Ek sal dan julle offers aanvaar,” sê die Here, die God van Esegiël. Die man wat die huis van die Here gemeet het, het my weer na die ingang aan die oostekant gebring. Die ingang was gesluit. Toe sê die Here vir my: “Hierdie ingang mag onder geen omstandighede oopgesluit word nie. Niemand mag hier ingaan of uitgaan nie. Die deur wat gesluit is, moet die mense herinner dat Ek, die Here, Israel se God, hierdeur gekom het toe Ek weer by my huis ingetrek het. Die ingang mag nooit oopgesluit word nie. Die een wat oor hierdie volk regeer, mag in die ingangsportaal gaan sit om te eet, voor My. Maar hy mag nie deur die ingang gaan nie. Hy moet omloop en ’n ander ingang gebruik.” Die man het my toe na die ingang aan die noordekant van die huis van die Here gevat. Toe ek daar kom, sien ek die Here is in sy huis. Ek het weer op my gesig voor die Here neergeval. Toe sê Hy vir my: “Mens, luister nou baie mooi. Ek gaan vir jou sê wat ’n mens in my huis mag doen, en wat nie. Ek gaan ook vir jou sê wie hier mag inkom en wie nie. Jy moet vir hierdie volk wat aanhoudend teen My opstandig is, gaan vertel wat Ek vir jou sê. Sê vir hulle: Ek het nou net mooi genoeg gehad van al julle slegte dade, volk van Israel! Julle het mense wat nie deel van my volk is nie, in my huis ingebring. Hulle is ’n spul mense wat niks vir My voel nie. So het julle my huis besoedel terwyl julle offers gebring het. En so het julle die ooreenkoms verbreek wat Ek met julle gesluit het. Dit was bo en behalwe al die ander slegte dinge wat julle gedoen het. Julle het nie in die huis van die Here gemaak soos Ek julle beveel het om te doen nie. Julle het selfs vreemdelinge gehuur om in my huis te werk.” Nou sê die Here, Esegiël se God: “Geen vreemdeling sal weer in my huis mag kom nie. Nie eens die vreemdelinge wat tussen my volk bly, sal hier inkom nie. As hulle nie aan My behoort en vir My lief is nie, is hulle nie welkom nie. Baie van die mense wat in my huis gewerk het, het gedros toe die res van die volk afgode begin dien het. Hulle het saam voor die afgode gaan buig. Nou moet hulle maar die gevolge van hulle slegte dade dra. Hulle mag by die ingang van my huis wagstaan en my huis oppas. En hulle mag die diere slag wat die mense bring om aan My te offer. Maar hulle het mos my volk aangemoedig om afgode te aanbid. Israel het slegte dinge gedoen. Daarom belowe Ek nou dat hulle nooit weer in my huis mag dien nie. Hulle moet die gevolge dra van die slegte dinge wat hulle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Hulle mag nie in my huis kom nie en hulle mag nie vir My offers bring nie. Hulle mag geen voorwerp of instrument hanteer wat slegs gebruik mag word om My te dien nie. Hulle moet skaam kry oor al die slegte dade wat hulle gedoen het. Hulle mag die huis van die Here oppas. En hulle mag help om die geboue reg te maak. Maar dis al. “Die kleinkinders van Sadok het nie saam met die volk slegte dade gedoen en afgode gedien nie. Hulle het My in my huis bly dien. Hulle mag dit daarom nou steeds doen. Ek laat hulle toe om in my huis te kom en My te dien. Hulle mag voor My kom en offers vir My bring, namens die volk,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle mag by die ingang van my huis instap en na my tafel kom om My te dien. Hulle het gedoen wat Ek hulle beveel het.” “Wanneer hulle by ’n ingang van my huis inkom, moet hulle onthou dat hulle die linneklere aantrek wat Ek voorskryf. Hulle mag nie in die huis van die Here ingaan as hulle klere aanhet wat van wol gemaak is nie. Selfs hulle hoede moet van linne gemaak wees. En hulle broeke ook. Die rede is dat hulle klere hulle nie moet laat sweet nie. Wol is te warm om te dra. As hulle uitgaan na die volk wat buitekant wag, moet hulle eers hulle linneklere uittrek. Die klere wat hulle dra as hulle voor My kom, mag nie uit die kamers gaan wat by my huis aangebou is nie. Selfs hulle klere dra die merk van my teenwoordigheid. As mense wat slegte dade doen daarmee in aanraking kom, kan hulle doodgemaak word. “Mense wat in my diens staan, mag nie hulle koppe kaal skeer nie. Maar hulle mag ook nie hulle hare lank dra nie. Hulle moet altyd hulle hare netjies laat sny. Iemand wat in my huis werk, mag nie wyn drink as hy in die verskillende kamers van my huis ingaan nie. Hulle mag slegs trou met vroue uit Israel wat nog nooit voorheen getroud was nie. Hulle mag ook met vroue trou wat mans gehad het wat vroeër in my huis gewerk het, maar wat intussen dood is. Hulle mag nie met ander vroue trou wat voorheen getroud was of wat geskei is nie. Hulle werk is om vir my volk te leer wat reg en verkeerd is, wat gedoen mag word en wat nie gedoen mag word nie.” “Mense wat in my huis werk, moet ook besluit wie reg is as twee mense stry oor ’n saak. Hulle sal besluit wie reg is soos Ek hulle beveel het om te doen. Mense wat vir My werk, moet doen wat Ek hulle beveel het. Hulle moet al die feesdae hou soos Ek vir hulle gesê het. Hulle moet ook kyk dat die mense op die sewende dag maak soos Ek beveel het. Op dié dag moet mense nie werk nie. Die sewende dag is my dag. Iemand wat in my huis werk, mag nie by ’n lyk kom nie. Hy mag slegs na ’n lyk gaan kyk as dit sy pa of ma of kind, of sy broer of ongetroude suster is. Maar dan mag hy nie dadelik weer terugkom en in my huis werk nie. Hy moet homself eers rein maak en dan sewe dae wag voor hy weer in my huis mag kom staan. Die eerste dag dat hy weer in my huis inkom, moet hy ’n offer namens homself bring sodat hy rein kan wees,” sê die Here, die God van Esegiël. “Die mense wat vir My werk, besit nie eiendom nie. Wat aan My behoort, gee Ek vir hulle. Hulle het nie grond op hulle naam soos die ander mense van Israel nie. Hulle leef van die offers wat die volk bring vir hulle eie sondes. Wat enigiemand eenkant sit en vir My gee as ’n geskenk, behoort aan die mense wat in my huis werk. Die eerste van die ryp vrugte wat mense na my huis toe bring en die geskenke wat mense vir My gee, gaan na die mense wat in my huis werk. Die eerste graankorrels van die oes en die eerste van die meel wat mense gemaal het, moet hulle na my huis toe bring. Dit gaan na die mense toe wat in my huis werk sodat hulle en hulle gesinne genoeg kan hê om van te leef. Die mense moet die beste van wat hulle bak vir My bring. Ek gee dit vir die mense wat in my diens staan. Daarom mag die mense wat in my huis werk, nooit vleis eet van ’n voël of ’n dier wat in die veld gevrek het of wat deur ’n ander dier doodgemaak is nie.” “Wanneer Ek die volk terugbring na hulle eie land, moet julle loot oor wie waar gaan bly. Maar dan moet julle ’n stuk grond van twaalf en ’n half kilometer lank en tien kilometer breed eenkant sit. Dit behoort aan My. Niemand mag daarop werk nie. Dit moet eenkant gesit word vir My. Hiervan moet ’n stuk van 250 vierkante meter vir die huis van die Here eenkant gesit word. Rondom moet julle ’n oop strook van 25 meter los. Van hierdie stuk grond wat julle afgemeet het, moet die huis van die Here gebou word op ’n stuk wat twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed is. Hierdie is die woning van die God wat heeltemal anders as mense is. Hierdie stuk grond behoort aan die Here. Dit is eenkant gesit vir diens aan Hom. Die mense wat in my huis werk en wat by die altaar mag kom om die diens aan die Here te verrig - dis hulle grond. Op hierdie grond kan hulle vir hulle huise bou. Dis deel van die grond wat aan die huis van die Here behoort. Daar bly nog ’n stuk van hierdie grond oor. Dit is ’n gedeelte wat twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed is. Hierdie grond gee Ek vir die ander mense wat in my huis diens doen. Hulle kom nie tot voor My nie, maar hulle werk in my huis. Hierdie grond behoort aan hulle. Hulle mag daar woon. “Dan moet julle ook grond afmeet wat twee en ’n half kilometer breed en twaalf en ’n half kilometer lank is. Hierdie area is net so groot soos die area wat vir My eenkant gesit is. Hierop moet julle julle stad bou. “Vir die een wat oor julle regeer, moet julle ook grond gee. Sy grond lê aan weerskante van die gebied wat aan My behoort en die grond wat vir die stad opsy gesit is. Die regeerder se grond lê wes en oos daarvan. Die regeerder se grond moet net so groot wees as die grond wat jy aan elke stam van Israel toeken. Die grond moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens. Hierdie grond is die regeerder se deel van die land. Ek sal vir julle ’n regeerder aanwys, en hy sal nie weer my volk sleg behandel nie. Hy sal nie weer hulle grond steel nie. Die Israeliete sal die land gelykop verdeel tussen die stamme van Israel.” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek het nou genoeg gehad van julle. Julle het nou te ver gegaan, regeerders van Israel. Hoor wat Ek sê. Hou op om mense gewelddadig te behandel. Hou op om mense te verdruk en uit te buit. Begin doen wat reg is. As julle moet besluit tussen twee mense wat stry, doen dan wat reg is. Hou op om my volk se grond en besittings te steel en vir julleself te vat,” sê die Here, die God van Esegiël. “Wanneer julle mense se kruideniersware afmeet, moet julle hulle nie bedrieg nie. Wanneer julle besigheid doen, lieg en bedrieg julle net om meer geld te maak. Hou op daarmee. Gebruik altyd dieselfde skaal wanneer julle weeg en die regte liniaal wanneer julle iets afmeet. Hou op om mense in te loop.” “As julle belasting aan die staat betaal, moet julle eerlik wees. Gee die regte bedrag. Moenie ’n kans vat en lieg nie. Betaal julle belasting deur een uit elke 200 van julle skape en bokke na my huis te bring. Bring ook die ander offers wat Ek van julle vra vir julle sondes,” sê die Here, die God van Esegiël. “Niemand word verskoon nie. Almal moet die regte belasting aan die regeerder van Israel oorbetaal. Van die regeerder vra Ek dat hy ook sekere offers vir my huis sal bring op die dae wanneer die volk feesvier. Dis sy verantwoordelikheid om die offers te bring as versoening vir Israel se slegte dade.” Die Here, Esegiël se God, sê verder: “Op Nuwejaarsdag moet die mense wat in die huis van die Here werk, ’n bul vat. Hy mag nie gebreklik wees nie. Met die bul se bloed moet hulle my huis rein maak. Hulle moet dit só doen. Die een wat in my huis werk, moet van die bul se bloed vat en dit aan die deurkosyne smeer. Hy moet dit ook smeer aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die kosyne van die ingang na die binneste deel van my huis. Hy moet dieselfde doen op die sewende van daardie maand. Dalk was daar mense wat slegte dinge gedoen het en dit nie eens besef het nie. Of dalk het hulle nie eens geweet dat dit wat hulle doen, sleg is nie. Só moet jy my huis weer rein maak. “Op die veertiende van daardie maand moet julle dan die paasfees vier om terug te dink aan hoe Israel uit Egipte verlos is. Vir hierdie fees moet julle sewe dae lank brood eet wat geen suurdeeg in het nie. By hierdie fees moet die een wat oor julle regeer, ’n bul as offer bring vir homself en vir die hele volk. Die fees hou sewe dae lank aan. Tydens die sewe dae van die fees moet julle regeerder elke dag ’n offer vir die Here bring. Hy moet sewe bulle en sewe skaapramme na my huis toe bring. Hulle mag nie gebreklik wees nie. Die regeerder moet dan ook nog elke dag ’n bokram as offer bring om die volk se sondes te versoen. Saam met sy offers moet hy sestien kilogram meel offer, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel. “Op die vyftiende van die sewende maand moet julle ook begin feesvier. By hierdie fees moet die regeerder ook sewe dae lank die offers van vleis en graan en olie bring, nes by die fees wat die volk se uittog uit Egipte herdenk.” So sê die Here, Esegiël se God: “Die ingang aan die oostekant van my huis moet vir ses dae gesluit wees. Maar op die sewende dag, wat vir My opsy gesit is en waarop julle moet rus, en op dae wat julle feesvier, moet die ingang oopgesluit word. Dan mag die regeerder van die volk by hierdie ingang ingaan. Hy moet by die deur gaan staan. Die mense wat in die huis van die Here werk, moet die offers wat hy gebring het, gaan offer. Hy staan daar en aanbid die Here in die ingang. Daarna moet hy omdraai en weer uitgaan op dieselfde pad waarmee hy ingekom het. Die ingang moet nie gesluit word nie totdat die son sak. Die mense van die land moet ook só maak. Hulle moet op die feesdae voor hierdie ingang kom staan en die Here op die sewende dag aanbid. “Elke sewende dag, wat vir My eenkant gesit word, moet die regeerder van die land ’n offer bring van ses lammetjies en een ram. Hierdie diere mag nie gebreklik wees nie. Hy bring ook sestien kilogram meel wat saam met die ram voor My verbrand moet word. Hy kan self kies hoeveel meel hy saam met elke lammetjie wil verbrand. Hy moet ook vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel sit. Op die fees wat julle vier omdat dit nuwemaan is, moet hy ’n bul as offer bring. Hy moet ook ses lammers en ’n skaapram bring. Geen dier mag gebreklik wees nie. Saam met die offers moet hy meel bring, sestien kilogram meel saam met die bul en die ram. En soveel meel as wat hy kan bekostig saam met die lammers. En vir elke sestien kilogram meel wat hy bring, moet hy vier liter olyfolie bysit. “As die regeerder na my huis toe kom, moet hy dieselfde ingang gebruik. Hy moet ook weer daar uitgaan. Maar wanneer die mense wat in die land bly op dae wat julle feesvier in my huis wil inkom, moet hulle deur die ingang aan die noordekant gaan. Daar moet hulle My aanbid. Dan moet hulle weer by die uitgang aan die suidekant uitgaan. En dié mense wat by die suidekant ingekom het, moet weer by die noordekant uitgaan. Niemand mag by dieselfde ingang uitgaan as waar hy ingekom het nie. Almal moet só maak. Dieselfde tyd as die mense ingaan, moet die regeerder van die land ook ingaan. Wanneer hulle inkom, moet hy ook in my huis inkom. En wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan. “Op die dae wat julle feesvier, moet julle sestien kilogram meel saam met ’n bul en ’n ram offer. Dan kan julle soveel meel vir die offer gee as wat julle wil as julle lammetjies as offers bring. En vir elke sestien kilogram meel wat geoffer word, moet daar vier liter olyfolie gebring word. Wanneer die regeerder vrywillig op ander tye ’n offer wil bring, moet die mense wat in my huis werk, die ingang aan die oostekant vir hom oopsluit. Dan moet hy dieselfde doen as wat hy op die sewende dag of dae wat julle feesvier, doen. As hy klaar is, moet hy weer by die ingang aan die oostekant uitgaan. Die mense wat daar werk, moet dan die ingang sluit. “Elke môre moet julle ’n jaaroud ram voor My op die altaar verbrand. Die dier mag nie gebreklik wees nie. Julle mag nie een môre oorslaan nie. Julle moet ook elke môre drie kilogram meel offer, saam met een en ’n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Julle mag nie een môre oorslaan nie. Julle moet elke môre die lam en die meel en die olie bring om op die altaar te offer.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, word dit die seun se eiendom. As die seun doodgaan, moet sy kinders dit erf. Maar wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond vir iemand gee wat vir hom werk, is dit anders. Hierdie persoon kry die grond tot die jaar wat Ek bepaal het dat alle mense se skuld afgeskryf word. Daardie jaar word die grond weer die eiendom van die regeerder se familie. As die koning doodgaan, erf sy kinders daardie grond. Die regeerder mag nie sy posisie misbruik en sommerso grond van sy volk afvat nie. ’n Mens se grond is die besitting van sy kinders ná sy dood. Ek wil nie hê dat my volk hulle grond moet verloor en dat hulle moet rondval om te probeer oorleef nie.” Die man wat die meetwerk in die huis van die Here moes doen, bring my toe by die ingang aan die noordekant. Dit is die ingang na die vertrekke waar die mense bly wat in die Here se diens is. Aan die westekant van hierdie kamers was daar ’n plek agter die gebou. Die man sê toe vir my: “Hier is die plek waar die priesters die vleis moet gaarmaak van die offers wat die mense bring. Hier moet hulle ook die meel gaarmaak saam met die olie. Hulle moet dit hier eenkant doen sodat hulle nie die offers naby die volk bring nie, want mense kan doodgaan as hulle met die offers in aanraking kom omdat die offers aan die Here behoort.” Daarna bring die man my toe na die buitekant van die huis van die Here, in die voorhof. Hy vat my toe by die vier hoeke van die voorhof verby. In elke hoek van die voorhof was daar ’n kleiner voorhof. Hierdie kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed. Daar het rook by hulle uitgekom. Daar was ’n muur om elkeen van die voorhowe. Aan die binnekant van die kleiner voorhowe was daar plekke gebou waarop ’n mens kon vuur maak. Die man het vir my gesê: “Hier maak die mense wat in my huis werk, die vleis gaar wat die volk vir die Here bring.” Die man wat die opmetings moes doen, het my toe weer teruggebring na die ingang van die huis van die Here toe. Toe sien ek iets snaaks. Daar het water onder die huis van die Here uitgekom, aan die oostekant daarvan. Die water het regs van die huis van die Here weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe aan die hand. Hy lei my by die ingang aan die noordekant van die huis van die Here uit, en om na die buitenste ingang aan die oostekant toe. Daar syfer die water toe regs langs die ingang uit. Die man het na die oostekant toe gestap. Met sy liniaal het hy 500 meter afgemeet van hierdie ingang af. Toe wys hy vir my ek moet deur die water loop. Die water het tot by my enkels gekom. Toe het hy nog 500 meter verder afgemeet. Hy het gaan staan en ek moes weer deur die water gaan. Hier het die water tot by my knieë gekom. Die man het toe nog 500 meter verder afgemeet, en ek moes weer deur die water loop. Hier het die water tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 500 meter verder af. Maar hier was die water ’n diep stroom. Ek kon nie daardeur loop nie. Die water was so diep dat ’n mens sou moes swem. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See. Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het. Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gaan nou vir jou wys wat die grense van die gebiede is wat vir die twaalf stamme van my volk gegee moet word. Onthou om aan Josef twee areas te gee. Aan elkeen van die ander stamme moet julle een area gee. Ek het vir julle oupagrootjies belowe dat Ek hierdie land aan hulle en hulle kleinkinders sal gee. Daarom moet julle dit erf. “Die grense van julle land lyk só: Die grens aan die noordekant van die land is van die Middellandse See, oor die volgende dorpe: oor Getlon tot by Sedad, en verder deur Hamat en Berota, verby Sibrajim tussen die grond wat aan Damaskus en Hamat behoort, en Middel-Gaser wat op die grens van Gauran lê. Die grens van julle land kom van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens. “Die grens aan die oostekant is van Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens. “Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Middellandse See. Dit is die suidgrens. “Aan die westekant is die grens die Middellandse See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens. “Elke stam in Israel moet ’n gebied kry wat net so groot is as die gebied wat elke ander stam gekry het. Wanneer julle moet besluit oor wie watter gebied kry, moet julle loot om te bepaal wie kry wat. As daar immigrante onder julle bly, en hulle is al ’n geslag lank by julle, moet julle ook vir hulle grond gee. Julle moet hierdie mense behandel asof hulle saam met julle burgers van julle land is. Die immigrante moet saam met julle van die grond erf wat Ek vir die stamme van my volk gee,” sê die Here, Esegiël se God. “So moet jy die land onder die stamme van Israel verdeel. Die gebied wat jy vir die stam van Dan moet gee, is in die noorde van die land. Die grenslyn loop van Getlon, oor Lebo-Hamat en Gasar-Enan tot waar die noordgrens van Damaskus teen Hamat raak. Dan se gebied strek oor die hele gebied van Israel, van die oostekant af tot aan die westekant. Aser se gebied is suid van dié van Dan en loop ook van oos na wes. Naftali se gebied is suid van Aser, ook van oos na wes. Manasse se gebied is suid van Naftali. Suid van Manasse se gebied is Efraim, en dan Ruben, en dan Juda. Hulle almal se grense strek van die oostekant tot die westekant van die land. “Suid van Juda se gebied is die stuk grond wat julle eenkant moet sit wat aan My behoort. Hierdie stuk grond moet twaalf en ’n half kilometer breed wees en net so lank as die ander stroke, van die oostelike tot by die westelike grens. Die huis van die Here moet in die middel van hierdie gebied wees. Hierdie stuk grond moet twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees. Die res van die grond moet aan die mense wat vir My werk, gegee word. Dit moet ’n strook wees van twaalf en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die huis van die Here staan in die middel hiervan. Die grond behoort aan die mense wat in my diens staan, die kleinkinders van Sadok. Hulle het baie lank hard in my huis gewerk. Hulle het nie die slegte dade gedoen wat die Israeliete en die ander mense gedoen het wat in my huis gewerk het nie. Hierdie stuk grond moet vir die mense gegee word wat in my huis werk. Langs die grond van die kleinkinders van Sadok moet jy ook grond gee vir die ander mense wat in my huis werk. Hulle is die kleinkinders van Levi, en jy moet vir hulle ook grond gee langs dié van die kleinkinders van Sadok. Die grond wat jy vir hulle gee, moet twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees. Die mense wat in my huis werk, mag nie die grond wat hulle kry, verkoop nie. Hulle mag nie hierdie deel van die land, wat die beste deel is, verkoop of verruil nie. Hierdie grond mag nie aan iemand anders behoort nie, want dit behoort aan My. “Die res van die grondgebied, ’n strook van twaalf en ’n half by twee en ’n half kilometer, moet julle gebruik om die stad op te bou. Hier kan julle huise bou en julle skape laat wei. Julle moet die stad hier bou. Die stad moet twee en ’n kwart kilometer by twee en ’n kwart kilometer wees. Jy moet aan al vier kante ’n strook van 125 meter los waarop julle niks mag bou nie. Buite die stad moet jy ’n gebied los waarop boere hulle vee kan laat wei. Hierdie gebied moet vyf kilometer na die oostekant en vyf kilometer na die westekant van die stad lê, al langs die grond wat jy vir My eenkant gesit het. Hier moet die grond bewerk word sodat die mense wat in die stad bly, genoeg kan hê om te eet. Die mense uit al die verskillende stamme van Israel wat gekom het om in die stad te werk, mag hierdie grond bewerk. Hierdie hele gebied, wat die area insluit wat vir My eenkant gesit is, en die gebied waarop die stad gebou is, sal twaalf en ’n half kilometer by twaalf en ’n half kilometer wees. “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van hierdie area moet julle vir die regeerder gee om daarop te maak wat hy wil. Hierdie stuk grond loop tot by die oosgrens van die land en weswaarts tot by die see en lê tussen die gebied van Juda en dié van Benjamin. “Die res van die grond moet aan die stamme gegee word wat oorbly. Elkeen van hulle moet ook ’n strook van die oosgrens af tot by die wesgrens kry. Benjamin se grondgebied lê suid van die regeerder van die land se grond. Suid van Benjamin se grondgebied lê dié van Simeon. Langsaan is die grondgebied van Issaskar, wat ook nes al die ander gebiede van die oostelike grens af tot by die westelike grens strek. Dan kom die gebied van Sebulon. Die gebied van Gad is suid van dié van Sebulon met dieselfde grense na die ooste- en westekant toe. Die suidelike grens van Gad se gebied loop van Tamar af oor die waters van Meriba-Kades met die spruit langs tot aan die Middellandse See. So moet jy die land onder die Israelitiese stamme verdeel,” sê die Here, die God van Esegiël. “Die uitgange uit die stad Jerusalem uit moet soos volg wees: die muur aan die noordelike kant van die stad moet twee en ’n kwart kilometer lank wees. Daar moet drie ingange wees wat elkeen vernoem is na stamme van Israel: Ruben, Juda en Levi. Die ander drie mure om die stad moet elkeen ook twee en ’n kwart kilometer lank wees. Elkeen van hulle moet ook drie ingange na die stad toe hê. Aan die oostekant moet die ingange vernoem word na Josef, Benjamin en Dan. Die ingange aan die suidekant moet vernoem word na Simeon, Issaskar en Sebulon. Die ingange aan die westekant moet vernoem word na Gad, Aser en Naftali. “Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees. En die naam van Jerusalem moet van vandag af wees: Die Here is daar!” In die derde jaar dat Jojakim koning van Juda was, het koning Nebukadnesar van Babel Jerusalem aangeval en die stad omsingel. Hy het Jerusalem ingeneem en die Here het hom toegelaat om Jojakim gevange te neem. Hy het ook van die voorwerpe wat die Israeliete in die tempel gebruik het, saamgevat Babel toe. Daar het hy dit in die tempel van sy eie afgode gebêre. Die koning het vir Aspenas, die hoofbeampte van die paleis, opdrag gegee om van die jongmense uit die koninklike familie en ook uit die ander belangrike families van Juda te kies en hulle paleis toe te bring. Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis. Aspenas moes hulle ook leer om Galdees, die taal van die Babiloniërs, te lees en te skryf. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle dieselfde kos en wyn as hy en sy gesin moes eet en drink. Hulle moes net die beste kry. Hulle moes vir drie jaar opleiding kry sodat hulle daarna as raadgewers van die koning in sy paleis kon werk. Onder die Judese jongmense wat gekies is, was Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofbeampte van die paleis het egter vir hulle elkeen ’n ander naam gegee. Vir Daniël het hy Beltsasar genoem, vir Gananja Sadrag, vir Misael Mesag en vir Asarja Abednego. Daniël het besluit om nie van die koning se ryk kos en wyn te eet en te drink nie. Dan sou hy ongehoorsaam wees aan die Israelitiese reëls oor wat ’n mens mag eet en wat nie. Daarom het hy die hoofbeampte van die paleis se toestemming gevra om dit nie te doen nie. Deur God se goedheid het Aspenas baie respek vir Daniël gehad, maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het besluit wat julle moet eet en drink. As jy nie so goed soos die ander jongmense lyk nie, is ek in groot moeilikheid. Hy mag selfs besluit om my dood te maak.” Daniël het toe vir die amptenaar wat deur Aspenas aangestel is om na hom en sy drie vriende om te sien, gesê: “Gee ons tien dae kans om onsself te bewys. Laat ons toe om net water te drink en groente te eet. Vergelyk ons dan met die ander jongmense wat die kos eet wat die koning voorgeskryf het. Besluit dan op grond van wat u sien of ons daarna met ons eie dieet kan aanhou of nie.” Die amptenaar het toe ingestem dat hulle dit vir tien dae kon probeer. Aan die einde van die tien dae het Daniël en sy vriende baie gesonder en sterker gelyk as al die ander jongmense wat die koning se kos geëet het. Van toe af het die amptenaar hulle toegelaat om groente te eet in plaas van die ryk kosse en wyn wat die koning voorgeskryf het. Deur God se goedheid was hierdie vier jongmans besonder slim. Hulle het goeie kennis van die belangrike boeke van daardie tyd gehad en baie wysheid. Boonop het Daniël die gawe gehad om visioene en drome uit te lê. Aan die einde van die driejaarperiode wat die koning vasgestel het, het Aspenas al die jongmense na koning Nebukadnesar toe gevat vir ’n onderhoud. Hy het met hulle almal gepraat, maar nie een van die ander het hom so beïndruk soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Daarom het hy hulle as raadgewers in sy paleis aangestel. Die koning het gou agtergekom as dit by sake kom wat wysheid of ’n goeie oordeel vereis, was Daniël en sy vriende se raad baie beter as dié van enige van sy towenaars en fortuinvertellers. Daniël het in die paleis bly werk tot die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië, die koning wat Babilonië verower het. In sy tweede regeringsjaar het koning Nebukadnesar ’n droom gehad wat hom so omgekrap het dat hy nie kon slaap nie. Hy laat roep toe sy towenaars, toekomsvoorspellers, besweerders en sterrevoorspellers om vir hom te kom sê wat hy gedroom het. Toe hulle voor hom staan, sê hy vir hulle: “Ek het ’n droom gehad wat my baie omkrap. Ek wil nou by julle weet wat dit beteken.” Die sterrevoorspellers het in Aramees vir die koning gesê: “Lank lewe die koning! As u net vir ons sê wat u gedroom het, sal ons vir u presies kan sê wat dit beteken.” Maar die koning antwoord hulle: “Kyk, ek het besluit julle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie kan doen nie, sal ek julle stadig laat doodmaak en julle huise sal verwoes word sodat die mense wat daar verbyloop, sal dink dis ’n ashoop. Aan die ander kant, as julle wel vir my kan sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle vereer en vir julle baie geskenke gee. Dit is mos eenvoudig: al wat ek wil hê, is dat julle vir my moet sê wat ek gedroom het en wat dit beteken.” Hulle sê toe weer vir die koning: “Asseblief, U Majesteit, vertel ons net wat u gedroom het, dan verduidelik ons vir u wat dit beteken.” “Dis nes ek gedink het!” het Nebukadnesar gebulder. “Julle is besig om vir tyd te speel omdat julle weet ek is ernstig oor wat ek gesê het. As julle nie my droom onmiddellik uitlê nie, is dit verby met julle. Julle het saam besluit om aan te hou om vir my leuens te vertel in die hoop dat iets dalk kan verander. Ek wil nóú by julle weet wat ek gedroom het sodat ek kan sien dat julle ook die droom kan uitlê!” Toe sê die sterrevoorspellers vir die koning: “Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan doen wat u van ons verwag nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook al was, het nog ooit so iets van sy towenaars, toekomsvoorspellers of sterrevoorspellers verwag nie. Dit is onmoontlik vir ’n mens om te doen wat u vra. Net die gode sou so iets kon doen, maar ongelukkig bly hulle nie hier op aarde tussen die mense nie.” Die koning was buite homself van woede oor hierdie antwoord. Daarom het hy beveel dat al die koninklike raadgewers in Babel doodgemaak moes word. Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie. Daardie selfde nag nog is die geheim in ’n visioen aan Daniël bekendgemaak. Hieroor het Daniël die God van die hemel geprys: “Prys God se Naam nou en vir altyd, Hy alleen het al die kennis en mag. Hy bepaal die koers van alles en almal in die wêreld; Hy haal konings uit hulle magsposisies uit en stel ander in hulle plek aan. Hy gee kennis en insig. Hy maak geheime dinge bekend; Hy weet wat in die donker gebeur, maar Hyself word deur die lig omring. Ek loof en prys U, God van my voorouers, U het vir my kennis en mag gegee en na my gebed geluister. U het vir ons gewys wat om vir die koning te sê.” Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.” Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.” Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?” Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons; sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak. Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes. Die hele beeld het inmekaargeval in ’n hoop yster, klei, brons, silwer en goud. Die rots het dit alles fyngerol soos kaf op ’n dorsvloer. Die wind het opgekom en alles weggewaai sonder dat ’n spoor daarvan oorgebly het. Daarna het die klip begin groei totdat dit ’n berg geword het wat die hele aarde volgemaak het. “Dit was u droom. Nou sal ek vir u verduidelik wat dit beteken. U Majesteit, u is die grootste van al die konings. Die God van die hemel het u die sterkste op aarde gemaak. Hy het vir u mag, gesag en eer gegee. Hy het u die heerser oor die hele aarde gemaak. U beheer selfs die diere en die voëls. U is die kop van goud. Ná u koninkryk sal daar ’n ander koninkryk kom wat u plek sal inneem. Maar dit sal nie so sterk soos u s’n wees nie. Na die val van hierdie koninkryk sal daar ’n derde koninkryk kom. Dit is die bronsgedeelte van die beeld in u droom. Hierdie koninkryk sal groot en sterk word en oor die hele wêreld regeer. Dan sal daar ’n vierde koninkryk ontstaan wat so sterk soos yster sal wees, wat alles breek en vernietig. So sal hierdie koninkryk al die vorige koninkryke breek en vernietig. Maar u het gesien dat die voete en tone van die beeld in u droom gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was. Dit beteken dat hierdie koninkryk ook in homself verdeeld sal wees. Sommige dele sal so sterk soos yster wees en ander weer so swak soos klei, soos dit maar in so ’n mengsel gebeur. U het ook gesien dat die yster en die klei gemeng was. Dit beteken dat die regeerders van hierdie koninkryk hulle koninkryk sal probeer verenig deur met mekaar te ondertrou. Dit sal nie werk nie, net so min as wat yster en klei kan meng. Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd. Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.” Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word. Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.” Die koning het Daniël vereer en hom met duur en mooi geskenke oorlaai. Hy het hom aangestel as regeerder oor die hele provinsie Babel en hom ook hoof gemaak van al die koning se raadgewers. Op Daniël se versoek is Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Daniël self het in die paleis gebly. Koning Nebukadnesar het ’n goue standbeeld laat maak, 27 meter hoog en amper drie meter breed. Hy het dit in die vlakte van Dura in die provinsie Babel laat oprig. Toe het hy beveel dat al sy amptenare, die prinse, die hoofde, die administrateurs, die raadgewers, die bankiers, die regters, die landdroste en al die ander belangrike amptenare van die provinsies bymekaar moes kom vir die inwyding van die beeld wat hy laat oprig het. Toe al hierdie belangrike amptenare aangekom het, het hulle voor die beeld gaan staan wat koning Nebukadnesar laat maak het. Toe het ’n aankondiger hard uitgeroep: “Mense van alle volke, nasies en taalgroepe, hierdie is die koning se bevel: Sodra julle die trompette, fluite, siters, liere, harpe en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle voor die goue beeld kniel wat koning Nebukadnesar laat maak het en dit aanbid. Enigeen wat weier om die beeld te aanbid sal dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi word.” Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, toe hulle die blaas- en musiekinstrumente hoor speel, voor die beeld gekniel wat koning Nebukadnesar laat oprig het en dit aanbid. ’n Klompie Babiloniërs het die Judeërs in die moeilikheid probeer kry. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Lank lewe die koning! U het mos die opdrag gegee dat as die musiek begin, almal voor die goue standbeeld moet kniel en dit moet aanbid, en dat enigeen wat weier om dit te doen, dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi moet word. Wel, daardie Judeërs, Sadrag, Mesag en Abednego, wat u aan die bestuur van die provinsie Babel geplaas het, steur hulle nie aan u opdrag nie. Hulle weier om u gode te aanbid of om voor die beeld wat u laat maak het te kniel.” Hieroor was Nebukadnesar baie kwaad. Hy het opdrag gegee dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor hom staan, het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle weier om my gode te aanbid en om voor die goue beeld wat ek gemaak het te kniel? Ek gaan julle nog een kans gee. As julle bereid is om voor die standbeeld te kniel en dit te aanbid as julle die musiek hoor, sal ek niks aan julle doen nie. Maar as julle weier, sal julle dadelik in die vuurwarm oond gegooi word. Dink mooi, want watter god sal julle daaruit kan red?” Toe antwoord Sadrag, Mesag en Abednego: “Koning Nebukadnesar, ons hoef ons nie voor u te probeer verdedig nie. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.” Nebukadnesar het skoon bleek geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het beveel dat die oond sewe maal warmer as gewoonlik gemaak moes word. Daarna het hy van die sterkste soldate beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die vuurwarm oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met klere en al in die rooiwarm oond gegooi. Omdat die koning in sy woede opdrag gegee het dat die vuur verskriklik warm gemaak moes word, het die hitte van die oond die soldate verbrand toe hulle die drie in die oond gegooi het. Sadrag, Mesag en Abednego het met toue om hulle lyf in die oond geval. Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?” “Dit is waar, U Majesteit,” het hulle geantwoord. “Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ’n hemelwese.” Nebukadnesar het toe na die oond toe gestap en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit!” Hulle het dadelik uit die oond gekom. Al die prinse, premiers, administrateurs en ander amptenare van die koning het nader gekom om na die drie mans te kyk. Hulle was verstom om te sien dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie. Hulle hare was nie geskroei nie en daar was nie ’n enkele brandmerk aan hulle klere nie. Hulle het nie eens na rook geruik nie. Toe sê Nebukadnesar: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red. Hulle het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om dood te gaan eerder as om enige ander god te aanbid behalwe hulle eie God. Daarom vaardig ek vandag ’n koninklike bevel uit. Enige persoon van watter volk, nasie of taalgroep ook al wat lelike dinge sê van Sadrag, Mesag en Abednego se God, moet onmiddellik stadig doodgemaak en sy huis vernietig word. Daar is nie nog ’n god hier op aarde wat so kan red nie.” Hierna het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego na nog hoër posisies in die provinsie Babel bevorder. Koning Nebukadnesar het die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Mag daar vrede en voorspoed vir julle wees! “Ek wil julle vertel van al die tekens en wonders wat die allerhoogste God my laat sien het. “Hoe asemrowend is sy tekens! Hoe ongelooflik is sy wonders! God is vir ewig koning en Hy heers vir ewig! “Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gebly. Maar toe een aand terwyl ek op my bed gelê en slaap het, het ek ’n skrikwekkende droom met vreesaanjaende visioene gehad. Ek het toe beveel dat al die koninklike raadgewers na my toe moes kom om die droom vir my te kom uitlê. Al die towenaars, toekomsvoorspellers, sterrevoorspellers en besweerders het toe na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar nie een van hulle kon dit vir my verklaar nie. Uiteindelik het Daniël, ook genoem Beltsasar na die naam van my god, na my toe gekom. Die Gees van die heilige God is in hom en ek het vir hom van my droom vertel. Ek het vir hom gesê: Hoofraadgewer Beltsasar, ek weet dat die Gees van die heilige God in jou is en dat daar nie ’n geheim is wat jy nie kan verklaar nie. Kom ek vertel jou wat ek gedroom het, dan verklaar jy dit vir my. “Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: ek het ’n groot boom in die middel van die aarde sien staan. Hierdie boom het al hoe groter en sterker geword totdat die top daarvan naderhand aan die hemel geraak het en die hele wêreld dit kon sien. Sy blare was dig en lowergroen en daar was soveel vrugte aan die boom dat daar genoeg was vir almal om van te eet. Die wilde diere het in die skaduwee van die boom kom lê en rus en die voëls het in sy takke nes gemaak. Almal het van die boom se vrugte geëet. Terwyl ek nog so lê en droom, het ek ’n hemelse wese, ’n opsigter uit die hemel, sien kom. Hy het kliphard uitgeroep: ‘Kap af die boom. Sny sy takke af! Stroop hom kaal van al sy blare en vrugte! En jaag al die diere en voëls weg wat daar kom rus en nes maak het. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op ’n mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier. “‘Hierdie bevel is deur die hemelse opsigters gegee. Die engele maak hierdie dinge bekend. Die doel hiervan is om vir die hele wêreld te wys dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die aarde heers. Hy het die mag om dit te gee aan wie Hy wil, selfs al sou dit in die wêreld se oë onbelangrike mense wees.’ “Dit is die droom wat ek gehad het,” het koning Nebukadnesar gesê. “Beltsasar, nou moet jy vir my sê wat dit beteken. Nie een van my ander raadgewers kon dit vir my uitlê nie, maar jy kan, want die Gees van die heilige God is in jou.” Toe Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, dit hoor, was hy aanvanklik so geskok dat hy nie ’n woord kon uitkry nie. Maar die koning het vir hom gesê: “Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou so ontstel nie.” Hierop het Beltsasar hom geantwoord: “O, hoe wens ek tog dat die gebeure wat in hierdie droom voorspel word, eerder met u vyande sou gebeur en nie met U Majesteit nie! U het ’n groot boom gesien wat so groot en sterk geword het dat dit aan die hemel geraak het sodat almal dit kon sien. Dit het mooi blare en baie vrugte gehad waarvan almal kon eet. Die wilde diere het daar gerus en die voëls het daar nes gemaak. Daardie boom is u, U Majesteit! U het magtig en sterk geword; u roem is selfs in die hemel bekend; u mag strek oor die hele aarde. Terwyl U Majesteit nog besig was om te kyk, het ’n hemelse opsigter, ’n engel uit die hemel, gekom en gesê: ‘Kap die boom tot teen die grond af. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op die mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier.’ “Nou sal ek vir U Majesteit die droom se betekenis verduidelik, want dit is wat die allerhoogste God oor u besluit het. U gaan uit die gemeenskap verstoot word sodat u saam met die wilde diere moet gaan bly. Sewe jaar lank sal u gras eet soos ’n bees en in die veld slaap, waar die dou op u sal val. Dan sal u moet erken dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die wêreld regeer en dat Hy die mag kan gee aan wie Hy wil. Die feit dat die engel die opdrag gegee het dat die stomp moet bly staan, beteken dat u weer u koninkryk sal terugkry sodra u geleer het dat die God van die hemel oor alles heers. U Majesteit, luister asseblief na my! Breek met u sonde deur te doen wat reg is en goed te wees vir die armes. Wie weet of u voorspoed nie dalk kan aanhou nie.” Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur. Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het, het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.” Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat. Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.” Dit het dadelik gebeur. Nebukadnesar is uit die gemeenskap weggejaag en hy het gras geëet soos ’n bees. Elke nag het die dou hom sopnat gedou. Sy hare het naderhand so lank geword dat dit op sy skouers gehang het en sy naels het soos die kloue van ’n voël gelyk. “Aan die einde van die sewe jaar het ek, Nebukadnesar, na die hemel toe opgekyk. Toe het my verstand weer na my toe teruggekeer. Dadelik het ek die allerhoogste God wat vir altyd lewe, geloof en sy Naam grootgemaak. Ek het gesê: Hy regeer vir ewig. Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie. Die mense op aarde is niks in vergelyking met Hom nie. Hy doen net wat Hy wil met die magte van die hemel en die mense op die aarde. Niemand kan Hom teëstaan of vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie. “Saam met my verstand het ek ook weer my waardigheid, my eer en my koningskap teruggekry. My raadgewers en my hoofamptenare het my met oop arms terugverwelkom. Hulle het my selfs met meer ontsag behandel as voorheen. “Daarom loof, prys en eer ek, Nebukadnesar, nou die groot Koning van die hemel. Sy optrede is altyd regverdig en alles wat Hy doen, is goed. Hy het die mag om mense te verneder wat te veel van hulleself dink.” ’n Klompie jare later het koning Belsasar een aand ’n groot feesete gehou vir ’n groot groep van sy hooggeplaastes, edelmanne en edelvroue. Tydens hierdie ete het hy heerlik saam met hulle wyn gedrink. Later, toe hy al heeltemal te veel gedrink het, het hy beveel dat hulle van die goue en silwerbekers wat sy pa, Nebukadnesar, uit die tempel in Jerusalem gevat het, moet gaan haal sodat hy en sy hooggeplaaste gaste en sy vroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle het die goue en silwerbekers gaan haal en die koning en al sy gaste het daaruit gedrink. Hulle het ook heildronke gedrink op al hulle afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip. Skielik het daar ’n mensehand verskyn wat op die gepleisterde muur van die paleis begin skryf het, op die plek waar die lamplig die helderste geskyn het. Die koning self het ook die hand sien skryf. Hy het doodsbleek geword van skrik. Sy knieë het letterlik begin bewe van vrees. Hy was so bang dat hy op sy mense geskree het om dadelik die towenaars, fortuinvertellers en sterrevoorspellers te gaan roep. Toe hulle inkom, sê hy vir hulle: “Vir die een wat kan lees wat hier geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, wag daar ’n beloning. Ek sal vir hom ’n koninklike kleed gee om aan te trek en ’n goue ketting om om sy nek te dra. Hy sal saam met my regeer as die persoon met die derde meeste gesag in die koninkryk.” Al sy raadgewers het hulle bes probeer, maar nie een van hulle kon die skrif lees of die boodskap daarvan uitlê nie. Koning Belsasar was angsbevange. Sy hooggeplaaste gaste was so uit die veld geslaan dat hulle nie geweet het wat om te doen nie. Die koning se ma het die lawaai gehoor wat die koning en sy gaste gemaak het. Sy stap toe die eetsaal binne en sê: “Lank lewe die koning! U Majesteit, moet tog nie so ontsteld en bang wees oor hierdie saak nie. Daar is ’n man hier in die ryk in wie die Gees van die heilige God is. Toe jou pa nog regeer het, het almal geweet dat hierdie man sy gesonde verstand kon gebruik en dat hy baie slim was. Dit was amper of hy self ’n god was. Jou pa, koning Nebukadnesar, het hom as hoof oor al die towenaars, fortuinvertellers, sterrevoorspellers en besweerders aangestel. Hy het ’n flink brein met ’n buitengewone vermoë om drome te kan uitlê, probleme op te los en moeilike sake uit te sorteer. Laat roep vir Daniël, vir wie jou pa die naam Beltsasar gegee het. Hy sal vir jou kan sê wat die skrif teen die muur beteken.” Daniël is dadelik laat haal. Die koning vra toe vir hom: “Is jy die Daniël wat deur my vader, Nebukadnesar, saam met die ander ballinge uit Juda hiernatoe gebring is? Ek het gehoor hulle sê dat die Gees van die heilige God in jou is en dat jy baie slim is en weet hoe om probleme op die regte manier op te los. Ek het my raadgewers en voorspellers laat kom om vir my te sê wat daar op die muur geskryf staan, en watter betekenis dit vir my het, maar hulle kon dit nie doen nie. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.” Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken. Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee. Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder. Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor. Die menslike samelewing het hom verwerp en hy het soos ’n dier geword. Hy het saam met die wildedonkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Hy het in die oop veld geslaap sonder enige beskerming teen die dou, totdat hy besef het dat die allerhoogste God in beheer is van al die koninkryke van die wêreld en dat Hy besluit wie regeer. “Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink. Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie! Daarom het Hy die hand gestuur om hierdie woorde te kom skryf. Daar staan geskryf: Getel, getel, geweeg, verdeel. Dit is wat dit beteken: Getel beteken dat God u regeringstyd se dae getel het en nou ’n einde daaraan gaan maak. Geweeg sê dat u op God se skaal geweeg is en te lig bevind is omdat u nie doen wat Hy sê nie. Verdeel beteken dat u koninkryk tussen die Mediërs en die Perse verdeel gaan word.” Op Belsasar se bevel het hulle vir Daniël ’n koninklike kleed omgehang en ook ’n goue ketting om sy nek gesit. Hy het ook laat aankondig dat Daniël nou derde in bevel in die koninkryk was. Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs, vermoor. Darius, die Mediër, het op die ouderdom van 62 in Belsasar se plek koning geword. Hy het besluit om die koninkryk in 120 provinsies te verdeel en het vir elkeen ’n goewerneur aangestel. Verder het hy ook drie ministers aangestel, van wie Daniël een was. Hulle moes kyk dat die goewerneurs hulle werk reg doen en ook dat die koning se belange beskerm word. Daniël het gou bewys dat hy baie bekwamer was as enige van die ander ministers of goewerneurs. Die koning was so beïndruk met hom dat hy dit oorweeg het om die hele koninkryk onder sy bestuur te plaas. Die ander ministers en goewerneurs het jaloers geword en begin fout soek met die manier waarop Daniël die koninkryk bestuur het. Hulle kon egter geen fout kry nie, aangesien Daniël betroubaar was en niks oneerliks gedoen het nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons enigste kans om Daniël vas te trek is as ons hom aankla oor die manier waarop hy sy godsdiens beoefen.” Hulle is toe weg na die koning toe. By hom aangekom, het hulle hom gegroet: “Lank lewe koning Darius! Al die ministers, adjunkministers, goewerneurs en ander administrateurs het besluit om met u te praat. Ons dink U Majesteit moet ’n koninklike bevel uitvaardig wat sê dat enige persoon wat in die volgende 30 dae enige ander persoon of god buiten U Majesteit aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word. Gee nou dadelik so ’n bevel skriftelik en onderteken dit sodat dit onmiddellik in werking tree en niemand dit kan verander nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.” Koning Darius het toe so ’n bevel opgestel en geteken. Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. In een van die boonste kamers van sy huis was daar vensters wat in die rigting van Jerusalem gekyk het. Daar het hy, soos sy gewoonte was, voortgegaan om by die oop vensters te kniel en drie maal per dag tot God te bid en Hom te prys. Daniël se vyande het hom in sy huis gekry waar hy besig was om God te aanbid en in nederigheid voor Hom te kniel. Hulle is toe haastig daar weg na die koning toe, waar hulle Daniël op grond van die koninklike bevel aangekla het: “U Majesteit, u het mos ’n bevel onderteken wat sê dat enigeen wat binne die volgende 30 dae enige mens of god behalwe u aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word.” “Natuurlik,” het die koning geantwoord, “en dit staan vas, want dit is ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.” Hulle sê toe vir die koning: “Wel, Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom glad nie aan U Majesteit se bevel nie. Hy bid nog steeds drie maal op ’n dag tot sy God.” Toe die koning dit hoor, was hy ontsteld omdat hy die bevel geteken het. Hy het die res van die dag bestee om ’n manier te probeer kry om vir Daniël uit hierdie situasie te red. Teen die aand se kant het die klomp weer na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit besef natuurlik dat volgens die wet van Meders en Perse geen bevel van die koning verander kan word nie.” Die koning moes toe maar die opdrag gee om Daniël te arresteer en in die leeukuil te gooi. Hy sê toe vir Daniël: “Mag jou God wat jy so getrou dien, jou red.” Hulle het ’n klip gaan haal en dit oor die opening van die plek gesit waar die leeus was. Daarna het die koning sy amptelike seël en ook dié van sy hooggeplaaste amptenare op die klip aangebring. So is Daniël se lot beseël. Die koning is terug paleis toe, waar hy ’n slapelose nag deurgebring het, sonder kos of enige ander tydverdryf. Vroeg die volgende môre het die koning opgestaan en vinnig na die leeukuil toe gegaan. Daar aangekom, het hy benoud geroep: “Daniël, dienaar van die lewende God! Was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?” Daniël antwoord toe: “Mag die koning nog lank lewe! My God het sy engel gestuur om die leeus se bekke toe te hou sodat hulle my niks kon aandoen nie. Hy het dit gedoen omdat Hy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie teen Hom gesondig nie en ook niks verkeerds teen U Majesteit gedoen nie.” Hieroor was die koning baie bly. Hy het dadelik opdrag gegee dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moes word. Nadat die mense Daniël uit die leeukuil gehaal het, het hulle gesien dat daar nie ’n enkele merk aan hom was nie. Dit was so omdat hy op sy God vertrou het. Daarna het die koning beveel dat die mense wat Daniël by hom aangekla het, saam met hulle families gevang moes word. Hulle en hulle families is toe saam in die leeukuil gegooi. Hulle het skaars grond geraak of die leeus was op hulle, besig om hulle te verskeur. Daarna het koning Darius die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Vrede en voorspoed vir julle! Ek beveel dat die God van Daniël in my hele koninkryk geëer en gerespekteer moet word. Hy is die lewende God en Hy bestaan vir ewig en altyd. Sy koninkryk sal nooit tot ’n einde kom nie, sy heerskappy sal vir altyd aanhou. Hy red en verlos sy mense; Hy doen bonatuurlike tekens en wonders in die hemel en op die aarde. Dit is Hy wat vir Daniël bewaar het sodat die leeus niks aan hom gedoen het nie.” Daniël was baie voorspoedig tydens die regerings van Darius en die Persiese koning Kores. Vroeër, tydens die eerste jaar waarin Belsasar koning van Babel was, het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien terwyl hy gelê en slaap het. Hy het die droom soos volg beskryf: “Daar was in my visioen in die nag ’n geweldige storm op die see en die wind het uit alle rigtings die branders heen en weer gewaai. Skielik het daar vier massiewe diere uit die see uit opgekom. Nie een van die diere het dieselfde gelyk nie. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk, maar dit het groot vlerke gehad soos dié van ’n arend. Terwyl ek nog so na die dier kyk, is sy vlerke afgeskeur. Hy het op sy agtervoete bly staan net soos ’n mens wat regop staan. Hy kon dink en reageer soos ’n mens. Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het ook op sy agterpote gestaan en in sy bek was daar drie ribbebene, tussen sy tande. Ek het gehoor hoe ’n stem vir hom sê: ‘Eet! Eet net soveel vleis as wat jy wil!’ Toe ek weer kyk, was daar nog ’n dier. Hierdie een het soos ’n luiperd gelyk. Op sy rug het hy egter vier vlerke soos ’n voël s’n gehad. Hy het ook nie net een kop gehad nie, maar vier. Dit was duidelik dat hy baie mag gehad het. Ek het ook in my visioen ’n vierde dier gesien. Hierdie dier was vreesaanjaend. Dit het my met angs gevul en dit was sterk. Met sy ystertande het hy sy vyande vermorsel en opgevreet. Wat oorgebly het, het hy verder met sy pote vertrap. Hierdie dier met sy tien horings was anders as die ander drie. Terwyl ek nog besig was om my aan die horings te verstom het ek gesien hoe daar ’n ander, kleiner horing tussen die horings uitkom. Drie ander horings is wortel en al uitgeruk om plek te maak vir hierdie horinkie. Hierdie horing het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond waarmee hy allerhande arrogante dinge gesê het. “Ek het ook gesien hoe daar trone reggesit word. Die Een wat vir ewig lewe, het op een van die trone gaan sit om as regter op te tree. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare so wit soos suiwer wol. Sy troon het vier vlammende wiele gehad en was omring deur vuur. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.” “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik: die vier groot diere is die vier groot wêreldmagte wat op die aarde sal heers. Maar op die ou end sal die mense wat aan die Allerhoogste behoort, as konings heers en hulle sal vir ewig regeer. “Ek wou toe meer weet van die vierde dier wat so anders as die ander lyk. Daardie skrikwekkende dier het sy slagoffers met sy ystertande opgevreet en met bronskloue vermorsel, en wat oorgebly het, verder onder sy pote vertrap. Ek het ook gevra oor die betekenis van die tien horings op sy kop, en ook oor die klein horinkie wat agterna uitgekom het en toe drie van die ander horings uitgeruk het. Dit is die een wat later groter geword het as die ander. Dit het oë gehad soos ’n mens en ’n mond wat verskriklik grootgepraat het. Terwyl ek besig was om te kyk het hierdie horing begin oorlog maak teen die mense wat aan God behoort het. Hy was besig om hulle te wen, totdat die Een wat vir altyd lewe, gekom en ingetree het vir die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Toe het die tyd aangebreek vir hierdie mense om as konings te regeer. “Hy het dit so vir my verklaar: die vierde dier is ’n vierde wêreldmag wat op aarde sal kom, maar wat totaal anders as al die ander sal wees. Dit sal die hele wêreld probeer inneem en sal alles platvee wat in sy pad kom. Die tien horings is tien konings wat die een na die ander in hierdie wêreldmag sal regeer. Na hulle tyd sal daar ’n ander koning kom wat heeltemal anders as die voriges is. Hy sal drie van die konings verslaan en oor hulle heers. Hy sal vieslike dinge teen die Allerhoogste sê en die mense wat aan die Allerhoogste behoort, onderdruk en bitter swaar laat ly. Hy sal sy bes doen om hulle godsdienstige voorskrifte en feeste te verander. Hy sal vir ’n vasgestelde tyd oor die mense van die Allerhoogste regeer. “Dan sal die hemelse hof besluit genoeg is genoeg, en die oordeel oor hom uitspreek. Hulle sal al sy mag van hom af wegneem en hom totaal en al vernietig. Dan sal die alleenheerskappy, die mag en die rykdom van al die koninkryke van die wêreld aan die mense gegee word wat aan die Allerhoogste behoort. Hulle sal vir altyd regeer en al die heersers van die wêreld sal God dien en gehoorsaam. “Hier eindig die visioen wat ek, Daniël, gesien het. Ek was baie omgekrap hieroor, ek het my skoon bleek geskrik. Maar ek het met niemand hieroor gepraat nie.” In die derde jaar dat Belsasar koning was, het ek nog ’n visioen gesien. In hierdie visioen het ek myself skielik in die hoofstad Susan in die provinsie Elam bevind. Ek het langs die Ulairivier gestaan. Toe ek opkyk, sien ek ’n skaapram met twee lang horings daar langs die rivier staan. Een van die horings was langer as die ander een, al het dit ná die eerste een begin groei. Ek het gesien hoe die ram na die weste en die noorde en die suidekant toe alles wat voorkom uit die pad stamp met sy horings. Daar was nie ’n dier wat sterk genoeg was om teen hom te veg of vir hom kon wegvlug nie. Hy het gedoen net wat hy wil en het al hoe sterker geword. Terwyl ek nog hieroor staan en dink, kom daar uit die weste ’n bokram wat so vinnig beweeg het dat sy pote nie eens die grond geraak het nie. Ek het gesien hy het net een horing wat tussen sy oë sit. Hy was op pad na die skaapram wat ek langs die rivier sien staan het. Die volgende oomblik het hy die skaapram in sy woede stormgeloop en hom so hard gestamp dat al twee sy horings afgebreek het. Dit het hom heeltemal hulpeloos gemaak. Toe het die bokram hom platgestamp en hom met sy pote begin vertrap sonder dat iemand hom kon help. Die bokram het al hoe sterker geword. Maar toe hy op sy heel sterkste was, is sy groot horing afgebreek. In die plek daarvan het daar vier ander groot horings uitgegroei wat elkeen in ’n ander windrigting gewys het. Uit een van hierdie groot horings het daar ’n kleiner horinkie gekom wat baie sterk geword het. Sy krag het suid- en ooswaarts uitgebrei en ook in die rigting van die wonderlike land van Israel. So magtig het hy geword dat hy selfs die hemel met sy magte aangedurf het. Hy was so sterk dat hy die sterre op die aarde neergegooi en hulle toe vertrap het. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse weermag se gesag uitgedaag. Hy het die daaglikse offers wat vir Hom gebring is, verbied en sy tempel vernietig. In plaas daarvan dat die mense hulle daaglikse offers gebring het, het hulle verkies om in sonde te leef. Hulle het die wetboek van die Here onder hulle voete vertrap en leuens links en regs vertel. Alles wat hierdie horing aangepak het, was suksesvol. Ek het toe twee hemelwesens met mekaar hoor praat. Die een het vir die ander een gevra: “Hoe lank gaan die gebeure in die visioen aanhou: die mense wat in sonde leef in plaas daarvan dat hulle die daaglikse offers bring, die tempel wat deur sonde besoedel word en die hemelse weermag wat so vertrap word?” Die een het toe geantwoord: “Na 2 300 aande en oggende sal die tempel weer ’n plek word waar God gedien word.” Ek was nog besig om te dink wat die visioen beteken toe daar skielik iemand wat soos ’n man lyk, voor my staan. Toe hoor ek ’n stem uit die Ulairivier wat sê: “Gabriël, sê vir Daniël wat die visioen beteken wat hy gesien het!” Gabriël het langs my kom staan, maar ek het so bang geword dat ek op die grond neergeval het. Hy sê toe vir my: “Klein mensie, jy moet verstaan dat die dinge wat jy gesien het, te make het met die laaste dae op aarde.” Ek het bewusteloos geraak en inmekaargesak terwyl hy met my gepraat het. Maar hy het aan my geraak en ek kon weer regop staan. Toe sê hy vir my: “Ek is hier om jou te wys hoe God se oordeel gaan wees, want wat jy gesien het, het te make met die laaste dae op aarde. “Die skaapram met die twee horings verwys na die koninkryke van Medië en Persië. Die bokram is die koninkryk van Griekeland en die groot horing tussen sy oë die eerste koning. Die vier horings wat in die plek van die afgebreekte groot horing gekom het, wys dat die Griekse Ryk in vier dele gaan verdeel, elkeen met ’n eie koning, maar nie een van hulle sal so sterk soos die eerste koning wees nie. Teen die einde van hulle regeringstyd, wanneer hulle sonde ’n hoogtepunt bereik het, sal daar ’n ander hardkoppige, barbaarse en slinkse koning op die toneel verskyn. Hy sal baie sterk word, maar nie deur sy eie krag nie. Hy sal verskriklike verwoesting aanrig en suksesvol wees in alles wat hy aanpak. Hy sal magtige leiers verslaan en God se heilige volk onder sy voete stukkend trap. Omdat hy mense maklik bedrieg, sal hy baie volke oorwin omdat hy hulle met sy skelm optrede onkant sal vang. Omdat hy verskriklik vol is van homself, sal hy baie volke heeltemal vernietig. Hy sal selfs uitdagend voor die Opperregeerder gaan staan. Dan sal hy vernietig word, maar nie deur ’n mens nie. Wat die visioen oor die aande en die oggende aan jou gewys het, is waar. Maar jy moet dit vir eers geheim hou, want dit is nog baie lank voordat hierdie dinge gaan gebeur.” Hierna het ek weer my bewussyn verloor. Ek was vir ’n hele paar dae siek. Na ’n ruk het ek weer opgestaan en aangegaan met my werk. Ek was egter nog steeds ontsteld oor die visioen omdat ek dit nie heeltemal verstaan het nie. Darius, die seun van Ahasveros, was ’n Mediër, maar hy het koning geword van die Babiloniërs. Tydens sy eerste jaar as koning het ek die Woord van die Here bestudeer. Ek het toe gesien dat volgens die Woord van die Here soos Hy dit deur die profeet Jeremia laat opteken het, Jerusalem vir 70 jaar ’n verlate stad moes wees. Daarom het ek met gebed en smeking voor die Here God gaan staan. Ek het glad nie geëet nie, rouklere aangetrek en as op my kop uitgegooi as teken van my opregtheid. Toe het ek tot die Here my God gebid en bely: “O Here, U is ’n groot en verskriklike sterk God! U kom altyd u beloftes na teenoor die mense wat U liefhet en doen wat U van hulle verwag. Maar ons het sonde gedoen en die pad byster geraak. Ons het in opstand teen U gekom en die rug vir u opdragte en reëls gedraai. Ons het geweier om te luister na u boodskappers wat in u Naam met ons konings, ons leiers, ons voorouers en die hele volk gepraat het. Here, U doen altyd wat reg is, maar ons is heeltyd besig om skandes te maak. Ons almal doen dit, dié wat in Juda en Jerusalem bly, maar ook dié wat U oor die hele wêreld verstrooi het omdat hulle nie na U wou luister nie. Here, hierdie skande het oor ons gekom omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers U in die steek gelaat het met hulle skandelike dade. Ten spyte van ons opstandigheid is U, o Here ons God, bereid om ons te vergewe. Want U is ’n goeie God wat ons baie liefhet. “ Ons het nie geluister na U, ons Here en God, nie, want ons het nie gedoen wat u dienaars, die profete, vir ons gesê het nie. Die hele Israel het die rug vir U gedraai en wou nie doen wat U van hulle verwag nie. Toe U met hulle gepraat het, het hulle hulle ore toegedruk. Daarom dra ons nou die gevolge van ons verkeerde dade soos U ons gewaarsku het in die wet van Moses, u dienaar. U het gedoen wat U gesê het U met ons en ons leiers gaan doen. Wat met Jerusalem gebeur het, is die grootste ramp ooit. Alles het gebeur net soos dit in die wet van Moses geskryf staan. En tog, Here ons God, het ons geweier om op te hou sonde doen. Ons wou nie na U toe terugkom om te kom sê ons is jammer nie. Daarom het U ons nie jammer gekry nie. U het ons die gevolge laat dra van ons ongehoorsaamheid. Want U is ’n God wat doen wat U sê. U tree altyd reg op. “Here, ons God, U het u mag bewys toe U u volk uit Egipte laat trek het. Daarom word u Naam tot vandag toe nog onthou en met groot respek behandel. Maar ons is sleg en vol sonde. Here, U is vol goedheid en liefde; moet tog nie langer vir Jerusalem kwaad wees nie. Dit is tog u stad, u heilige berg staan daar. Dit is ons en ons voorvaders se skuld dat ons bure oor Jerusalem lag en spot. O God, hoor tog as ek voor U pleit. Herstel tog u tempel wat verwoes is, sodat almal kan weet en sien dat U God is. O my God, luister tog na my en hoor my versoek. Kyk net weer ’n bietjie na ons en sien in watter ellende ons is. En dit nogal in die stad wat u Naam dra. Ons vra nie u hulp omdat ons dit verdien nie, maar omdat ons weet dat U so goed en vol genade is. Hoor, Here! Vergewe, Here! Tree op, doen asseblief iets! Dit is u stad en u mense oor wie u Naam uitgeroep is. Moenie wag nie, my God, sodat almal kan sien dat U God is.” Ek was nog besig om te bid en vergifnis te vra vir my eie en my volk se mislukkings en by die Here my God vir die stad van my God te pleit toe Gabriël, wat ek in die vorige visioen gesien het, daar by my aankom. Dit was tyd vir die aandoffer. Hy het vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou te help om alles reg te verstaan. Die oomblik toe jy begin bid, het God reeds besluit wat Hy gaan doen. Omdat God jou baie liefhet, het Hy my gestuur om vir jou te kom vertel wat gaan gebeur. Luister nou baie mooi sodat jy kan verstaan. “Daar is 70 tydperke wat vasgestel is vir jou volk en hulle heilige stad: om ’n einde te maak aan hulle opstandigheid, om te vergeet van hulle mislukkings, om hulle goddeloosheid weg te vee en om God se reg te laat geskied. So sal my woorde en die visioen in vervulling gaan en die tempel weer in God se diens staan. “Let op sodat jy dit reg kan verstaan! Vandat die opdrag gegee word dat Jerusalem herstel moet word totdat die leier wat God self gekies het, op die toneel verskyn, sal daar sewe keer sewe jaar verbygaan. Dit sal sewe maal 62 jaar neem om Jerusalem weer op te bou met strate en veilige mure. Dit gaan moeilike tye wees. Aan die einde van die tydperk sal ’n leier onregverdig doodgemaak word. Die stad en die tempel sal deur ’n ander magtige leier se soldate verwoes word. Dan sal die einde, die oorlog en verwoesting wat God beplan het, soos ’n vloed kom en alles wegspoel. Daardie leier sal ’n ooreenkoms van een maal sewe jaar met baie mense aangaan. Wanneer die helfte van hierdie tyd verby is, sal hy die diereoffers en die graanoffers in die tempel verbied. Hy sal ’n afstootlike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand sal lei. Die ding sal daar bly staan tot op die dag dat hierdie leier sy verdiende loon kry wat God vir hom beplan het.” In die derde jaar van Kores se koningskap oor Persië het Daniël, wat ook Beltsasar genoem word, ’n openbaring gehad. Die boodskap het van God af gekom, maar dit was baie moeilik om te verstaan. Eers nadat die betekenis in ’n visioen verduidelik is, het ek, Daniël, verstaan waaroor dit gaan. Ek het op daardie stadium reeds vir drie weke getreur. In hierdie tyd het ek glad nie enige ryk kos of vleis geëet nie. Ek het ook nie wyn gedrink of gebad en my hare gekam nie. Op die 24ste van die eerste maand het ek op die wal van die Tigrisrivier gestaan. Toe ek opkyk, sien ek ’n man met linneklere aan en ’n belt van fyn goud om sy lyf daar staan. Sy lyf het soos ’n edelsteen geblink en sy gesig was so helder soos die lig van ’n weerligstraal. Sy oë het soos tonge vuur gevlam. Sy arms en bene het gelyk soos brons wat blink gevryf was. Toe hy gepraat het, het dit geklink of dit ’n hele skare mense was wat gelyk praat, so hard was sy stem. Net ek kon die visioen sien, maar nogtans het die mense wat by my was so bang geword dat hulle weggehardloop en gaan wegkruip het. Ek het stom van verbasing alleen daar bly staan en na die visioen gekyk. Dit was so indrukwekkend dat ek net magteloos kon staan en kyk. Ek was doodsbleek van die skrik en verbystering. Toe die man met my praat, het ek bewusteloos op die grond geval. Hy het my opgetel en alhoewel ek hande-viervoet gestaan het, het ek onophoudelik gebewe. Hy sê toe vir my: “Daniël, die Here is vir jou baie lief. Staan regop en luister na wat ek vir jou gaan sê, want ek is spesiaal na jou toe gestuur.” Toe hy dit sê, het ek al bewend opgestaan. Hy sê toe vir my: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor. Ek is juis hier in antwoord op jou gebed. Die beskermengel van die Persiese Ryk het my 21 dae lank gekeer om na jou toe te kom. Toe het Migael, een van die belangrikste leiers van die engele, my kom help. Daarom kon ek hom daar by die Persiese beskermengel los. Ek het gekom om vir jou te kom verduidelik wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie is ’n visioen oor die toekoms.” Toe hy dit vir my sê, het ek net sprakeloos na die grond bly staar. Die engel wat soos ’n mens gelyk het, het toe sy hand uitgesteek en aan my mond geraak. Daarna kon ek weer praat en ek het vir hom gesê: “Weet u, die visioen het my so ontstel dat ek nog steeds lam van die skok is. Watter reg het ek, wat maar net ’n doodgewone mens is, om met so ’n belangrike figuur soos u te praat? Ek het so geskrik dat ek skaars kan asemhaal.” Hierdie engel het toe weer ’n keer aan my geraak en ek kon voel hoe my kragte terugkom. Toe sê hy vir my: “Moenie bang wees nie, God het jou lief! Ontspan net, dit sal goed gaan met jou. Jy hoef vir niks bang te wees nie!” Dit het my beter laat voel en ek sê toe vir hom: “U kan nou maar praat, want ek voel sommer baie beter.” Hy sê toe vir my: “Verstaan jy nou waarom ek na jou toe gekom het? Ek moet binnekort teruggaan om teen die beskermengel van Persië te veg. Nie lank daarna nie sal die beskermengel van Griekeland ook op die toneel verskyn. Maar ek moet eers vir jou vertel wat in die Boek van die Waarheid geskryf staan. Daarna moet ek terug, want ongelukkig is daar niemand anders om my teen die ander twee beskermengele te help behalwe Israel se beskermengel, Migael, nie. “Ek en Migael staan reeds sedert die eerste jaar van koning Darius die Mediër se regering sy aan sy om mekaar te help en te versterk.” “Wat ek jou nou gaan vertel, is die waarheid. Daar gaan nog drie konings oor Persië regeer. Na hulle kom daar ’n vierde koning, wat baie ryker as die ander gaan wees. Sy rykdom sal hom baie invloedryk maak en hy sal dit gebruik om al die ander wêreldmagte op te sweep om teen Griekeland in opstand te kom. Dan sal ’n dapper koning op die toneel verskyn. Hy sal oor ’n groot en magtige ryk regeer en doen net wat hy wil. Maar net sodra hy dink dat hy in beheer is, sal sy koninkryk uitmekaarskeur en in vier dele verdeel word. Dit sal nie sy kinders wees wat oor hierdie koninkryke regeer nie. Sy magtige ryk sal soos ’n boom ontwortel word en vir ander gegee word om op ’n ander plek te plant. Daarom sal dit nooit weer so magtig wees soos sy ryk nie. “Die koning van die suide sal ’n magtige koning wees, maar een van sy generaals sal nog magtiger as hy word en selfs oor ’n nog groter koninkryk as hy regeer. Later sal die koning van die noorde ’n ooreenkoms aangaan met die koning van die suide. Dan sal die koning van die noorde met die koning van die suide se dogter trou. Ongelukkig sal sy en haar pa hulle invloed oor hom verloor. Uiteindelik sal sy, haar pa, haar man en al haar volgelinge doodgemaak word. Nie lank daarna nie sal een van haar familielede koning word. Hy sal hom gereedmaak vir oorlog teen die koning van die noorde en hom verslaan. Hy sal hulle afgodsbeelde en hulle kosbare skatte van silwer en goud saam met hom terugvat Egipte toe. Vir ’n paar jaar sal daar weer vrede wees, totdat die koning van Sirië besluit om Egipte aan te val, maar hy sal nie wen nie. “Sy seuns sal hulle later vir oorlog klaarmaak en ’n groot leër bymekaarmaak. Hulle sal soos ’n vloedgolf water aangerol kom tot by een van die hoofstede van die koning van die suide. Dit sal die koning van die suide so kwaad maak dat hy die koning van die noorde sal aanval en verslaan. Hy sal baie trots en vol van homself wees oor sy oorwinning en oor al die vyande wat hy doodgemaak het. Maar sy oorwinning sal van korte duur wees. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land toe en vir hom nog ’n groter leër as die vorige keer bymekaarmaak. Later sal hy terugkom, maar hierdie keer met ’n baie sterker leër as voorheen. Baie mense sal dan in opstand kom teen die koning van die suide. Selfs van jou eie volk se rebelle sal daaraan deelneem. Maar hulle gaan in die moeilikheid beland. Dan sal die koning van die noorde een van die hoofstede omsingel, die mense uithonger en dit later inneem. Alhoewel die troepe van die suide baie dapper sal veg, sal hulle nie kan uithou nie. Selfs nie eers hulle beste soldate sal sterk genoeg wees nie. Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil en niemand sal in sy pad staan nie. Hy sal ook in die Beloofde Land intrek en dit oorneem. Hy sal planne maak om sy volle weermag teen die koning van die suide te gebruik om hom te verslaan. As deel van die plan sal hy met die koning van die suide ’n ooreenkoms sluit en selfs sy dogter met hom laat trou. Maar hierdie plan sal nie slaag nie. Dan sal die koning van die noorde die kusgebiede inneem. Maar ’n sterk leier van ’n ander gebied sal ’n einde maak aan sy arrogante optrede. Hy sal hom in eie munt terugbetaal. Hierna sal die koning van die noorde na sy eie land toe teruggaan as ’n verslane man. Dit sal sy einde wees. Sy opvolger sal ’n belastingbeampte aanstel wat die koning sal verryk. Hy sal nie baie lank regeer voordat hy doodgemaak word nie. Dit sal nie as gevolg van oorlog of ’n openbare verhoor wees nie. “Hy sal opgevolg word deur ’n slegte man wat nie die reg het om koning te wees nie. Maar hy sal niksvermoedende mense om die bos lei met sy skelm planne en die koningskap oorneem voordat hulle hulle oë kan uitvee. Hy sal enige mag wat hom probeer teëstaan, uit die pad vee, selfs ook die hoëpriester van God se eie volk. Hy sal deur leuens en skelmstreke met baie ander lande ooreenkomste sluit om homself te bevoordeel. Al regeer hy oor ’n klein volkie, sal hy al hoe magtiger word. Hy sal sonder waarskuwing een van die rykste provinsies binneval en vieslike dinge doen waarvan sy voorgangers nie eens gedroom het nie: hy sal die buit wat hy van die rykes gevat het vir sy volgelinge gee om dit onder hulle te verdeel. Hy sal ook planne maak om van die versterkte stede van die ander volke aan te val, maar dit sal nie lank wees voor die uurglas vir hom leegloop nie. “Dan sal hy ’n groot leër bymekaarmaak om die koning van die suide aan te val. Die koning van die suide sal hom inwag met sy eie sterk en groot leër, maar dit sal hom niks baat nie, omdat daar stilletjies ’n komplot teen hom gesmee is. Sy vertrouelinge sal hom in die rug steek. Baie van sy soldate sal in die geveg doodgaan en sy leër sal verslaan word. Die twee konings sal om die tafel vir mekaar sit en lieg. Dit sal in elk geval nie help nie, want nie een van hulle sal kry wat hulle wil hê nie, omdat God anders besluit het. “Hierna sal die koning van die noorde met al sy oorlogsbuit omdraai huis toe. Op pad terug sal hy eers probeer om God se verbondsvolk en hulle godsdiens uit te roei. Nadat hy met hulle gedoen het wat hy wou, sal hy uiteindelik koers kies terug huis toe. “Later sal hy weer die suide binneval, maar hierdie keer sonder sukses. Die Romeine sal met hulle vloot teen hom optrek en dit sal hom vinnig van besluit laat verander. Om sy vernedering te wreek sal hy sy woede op God se verbondsvolk kom uithaal. Daar sal hy luister na die mense wat nie meer in God glo nie. Van sy soldate sal in die tempel ingaan en God se heilige Naam skend. Hulle sal die mense verbied om hulle godsdiens te beoefen en ’n gruwelike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand lei. Hy sal dié wat reeds die rug vir God gedraai het, met vleitaal aan sy kant kry, maar die mense wat God dien, sal sterk staan teen hom. Van die verstandige leiers sal aan die volk die regte leiding gee. Maar ook hulle sal vir ’n tyd lank doodgemaak, verbrand, beroof en in die tronk gegooi word. Tydens daardie vervolging sal hulle darem ’n bietjie hulp van baie mense kry. Ongelukkig sal sommige mense wat hulle kom help, se motiewe nie heeltemal suiwer wees nie. Party van die goeie leiers sal doodgemaak word. Dit alles sal die volk net sterker en meer vasberade maak om voluit vir God te leef. Hierdie vervolging sal aanhou tot die tyd kom wat God bepaal het. “Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil. Hy sal oor homself spog en sê dat hy groter is as enige god. So vol is hy van homself dat hy hom selfs met die allerhoogste God sal vergelyk. Hy sal hiermee aanhou totdat God se woede teen sy volk bedaar het. Want God het alles fyn beplan en dit sal gebeur soos Hy wil. Hierdie koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorouers of aan daardie god wat party vroue aanbid of aan enige ander god nie. Hy sal loop en vertel dat hy sterker is as enigeen van hulle. Hy sal die god van die versterkte stede aanbid, ’n vreemde god wat sy voorouers nie eens geken het nie. Hy sal hierdie vreemde god dien met geskenke van goud, silwer, edelstene en ander kosbare geskenke. Met die hulp van hierdie vreemde god sal hy sy vyande se sterk stede aanval. Dié wat hom as koning erken, sal hy in hoë posisies in sy regering aanstel en vir hulle grond skenk as beloning. “Wanneer die koning van die noorde se laaste uur byna aangebreek het, sal die koning van die suide hom aanval. Maar die koning van die noorde sal hom met sy volle leër teëstaan. Hy sal tegelyk sommer baie ander lande ook inneem. Hy sal oor hulle loop soos ’n rivier wat sy walle oorstroom. Hy sal selfs die Beloofde Land weer inval en baie ander lande sal voor sy mag swig. Maar Edom, Moab en die grootste deel van Ammon sal sy inval vryspring. Egipte sal nie loskom nie. Hy sal Egipte se skatte van goud en silwer en ook die ander skatte vir homself vat. Hy sal ook die Libiërs en die Etiopiërs dwing om vir hom te werk soos slawe. Dan sal allerhande stories uit die ooste en die noorde hom bereik wat hom so sal omkrap dat hy ’n klomp onskuldige mense sal doodmaak. Hy sal kamp opslaan tussen die Middellandse See en die heilige berg waarop die tempel staan. Daar sal hy doodgaan sonder dat iemand hom kan help.” “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef. Die goeie leiers sal in daardie tyd wees soos ’n helder dag sonder wolke in die lug. En dié wat mense op die regte pad gelei het, sal dan vir altyd skitter soos die sterre van die hemel. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou. Maak die boek toe en verseël dit sodat niemand dit kan oopmaak nie. So moet dit bly tot die laaste dae hier op aarde aangebreek het. Baie mense sal probeer agterkom wat aangaan, maar dit sal hulle niks help nie.” Toe sien ek twee ander figure aan weerskante van die Tigrisrivier staan. Een van hulle vra toe vir die man met die linneklere aan wat so ’n entjie stroomop gestaan het: “Hoe lank nog voordat hierdie verskriklike dinge ophou?” Hy het toe albei sy arms na die hemel toe uitgesteek en ’n plegtige belofte afgelê in die Naam van Hom wat ewig lewe. Hy het gesê: “Vir die hele tyd wat reeds vasgestel is. Hierdie dinge sal ophou wanneer God se volk vernietig is.” Ek het gehoor wat hy sê, maar nie mooi verstaan nie, en daarom het ek vir hom gevra: “Maar hoe gaan dit alles eindig?” Hy het toe vir my gesê: “Jy moet gaan, Daniël, want hierdie woorde moet geheim gehou en weggesteek word tot die einde kom. Baie mense sal tot bekering kom. Hulle sal op ’n nuwe manier begin leef en in hulle geloof versterk word as gevolg van hierdie swaar tye. Maar die goddelose mense sal nog erger aangaan en nog verder wegdwaal. Gelukkig sal die goeie leiers verstaan waaroor dit gaan. Van die tyd af dat die mense verbied word om die ware godsdiens te beoefen, vandat hulle die gruwelike afgodsbeeld daar op die altaar in die tempel neersit, daardie ding wat tot verwoesting lei, sal 1 290 dae verloop. Dié wat getrou bly aan God totdat die 1 335 dae verby is, sal gelukkig wees. Maar jy moet volhard in jou geloof tot die einde toe. Dan sal jy doodgaan, maar jy sal opstaan en jou hemelse beloning kry aan die einde van die tyd.” Die Here het Hosea geroep om sy boodskapper te wees. Sy pa was Beëri. Hy het die Here se boodskap gebring in die tyd toe eers Ussia en daarna Jotam, toe Agas en daarna Hiskia die konings van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was die hele tyd die koning van Israel in die noorde. Toe die Here Hosea geroep het om sy boodskap vir sy volk te gaan gee, het die Here vir hom gesê: “Gaan vat vir jou ’n vrou wat rondloop. Sy sal kinders hê, al is sy nie met ’n man getroud nie. Sy is net soos Israel wat wil rondloop en nie by die Here wil bly nie.” Hosea het toe vir Gomer gevat. Sy was Diblajim se dogter. Na ’n tyd het sy ’n baba verwag en ’n seuntjie is toe gebore. Die Here het vir Hosea gesê: “Die seuntjie se naam moet Jisreël wees. Een van die dae gaan Ek vir koning Jehu straf omdat hy die mense by Jisreël vermoor het. Dit is nou klaarpraat met die ryk van Israel. Ek gaan Israel se weermag in die vlakte van Jisreël op sy knieë dwing.” Gomer het weer verwag en ’n dogtertjie gehad. Die Here het vir Hosea gesê: “Haar naam is Lo-Rugama. Dit beteken ‘Gee nie meer om nie’. Ek gee nie meer vir Israel om nie. Ek gaan nie weer hulle sonde vergewe nie. Maar Ek sal steeds lief bly vir die mense van Juda in die suide. Ek sal hulle red. Daar sal nie ’n oorlog nodig wees om hulle van hulle vyande te bevry nie.” Toe sy opgehou het om Lo-Rugama te borsvoed, het Gomer weer ’n baba verwag en toe ’n seuntjie gehad. Hierdie keer het die Here gesê: “Sy naam is Lo-Ammi. Dit beteken ‘Nie my volk nie’, want julle is nie meer my volk nie en Ek is nie meer julle God nie.” “Nogtans sal die Israeliete so baie word soos die sandkorrels van die see wat ’n mens nie kan meet of kan tel nie. Ek sê nou vir hulle: julle is nie meer my volk nie. In die toekoms sal Ek weer vir hulle sê: julle behoort aan God wat altyd lewe. Die suidelike ryk van Juda en die noordelike ryk van Israel sal dan weer bymekaar uitkom. Hulle sal saamkom en net een leier hê. By Jisreël sal hulle op daardie dag saam optrek na hierdie land toe. Hulle sal hier geplant word soos ’n boom in die grond. Julle sal dan vir julle broers sê: ‘Ammi! Jy is nou weer die Here se volk.’ Julle sal vir julle suster sê: ‘Rugama! Die Here gee nou weer vir jou om.’” “Raas met julle ma. Baklei met haar. Ek gaan van haar skei. Sy moet ophou om agter ander mans aan te loop. Sy moet ophou om My te verkul. As sy nie ophou nie, gaan Ek haar dwing om al haar klere uit te trek sodat almal vir haar kan lag. Ek gaan haar skaam maak. Ek gaan haar poedelkaal laat uittrek soos die dag toe sy gebore is. Ek gaan haar eensaam maak, soos die woestyn. Ek gaan haar maak soos ’n plek in die veld waar niemand kom nie, omdat daar nie water is nie. Ek sal haar laat doodgaan van die dors. Ek sal nie haar kinders liefhê nie. Hulle is nie my kinders nie. Hulle is kinders wat sy by ander mans gehad het. Hulle ma was ’n prostituut. Sy het haar skandelik gedra. Sy het hulle kinders verwag. Sy het gesê: ‘Ek wil agter die mans aangaan wat by my kuier. Hulle gee vir my drank en kos. Ek kry by hulle klere en reukwater.’” “Ek pak doringtakke rondom haar. Ek bou ’n klipmuur rondom haar om haar by die huis te hou. Sy sal agter ander mans wil aangaan. Dit sal haar niks help nie, want sy sal hulle nie in die hande kry nie. Sy sal soek waar hulle is, maar sy sal hulle nie opspoor nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my eie man toe. Dit was beter toe ek by hom was.’ Sy het nooit raakgesien dat dit Ek was wat vir haar koring en wyn en olie en geld gegee het om van te leef nie. Selfs die goud wat sy vir die afgod Baäl gegee het, het sy by My gekry.” “Ek gaan sorg dat daar nie koring is om te oes in die oestyd nie. Daar sal ook nie druiwe wees om te pluk nie. Ek gaan die wol en die materiaal terugvat wat Ek vir haar gegee het om vir haarself klere te maak. Ek gaan haar kaal laat staan voor die mans met wie sy deurmekaar is, dat sy kan skaam kry. Niemand sal lus wees om weer iets met haar te doen te hê nie. Ek gaan haar rinkinkery stopsit. Ek maak ’n einde aan haar partytjies wat sy vir die afgode hou. Die feeste op die nuwemaan en op die sabbat sal op ’n einde kom. “Sy het gespog dat die mans wat by haar gekuier het, haar betaal het deur vir haar druiwe- en vyebome te plant. Ek gaan dit wortel en tak uitroei. Ek gaan dit bosse maak waar die wilde diere sal kom vreet. Ek gaan haar straf oor die tyd toe sy vir die Baäls offers gebring het. Ek gaan haar laat betaal vir die tyd toe sy haar mooi gemaak het en juwele aangesit het om agter die mans aan te loop en My net so laat staan het,” sê die Here. “Kyk net wat Ek gaan doen. Ek gaan haar ompraat om saam met My na die woestyn toe te gaan. Ek gaan daar vir haar mooi dinge sê wat sy graag wil hoor. As ons daar is, gaan Ek haar wingerde vir haar teruggee. Ek gaan die Akorlaagte verander. Daar waar sy hartseer was oor wat gebeur het, daar gaan Ek vir haar hoop gee vir die toekoms. Sy gaan weer vir My lief word soos vroeër toe sy nog jonk was. Dit gaan wees soos in die dae toe Ek haar uit Egipte gered het. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy vir My sê: ‘Jy is my man.’ Jy sal My nie weer ‘My leier Baäl’ noem nie. Jy sal nie eens meer die naam van Baäl noem nie. Jy sal skoon vergeet wat sy naam was. Ek gaan my volk teen die wilde diere beskerm. Ek gaan op daardie dag ’n ooreenkoms sluit met die wilde diere van die veld, met die roofvoëls in die lug en met die ongediertes op die grond om my mense te spaar. Ek sal die gevaar van die oorlog wegvat. Daar sal nie meer wapens wees om mee oorlog te maak nie. Hulle sal veilig in hulle land kan woon. “Ek sal joune wees vir altyd. Tussen My en jou sal alles reg loop. Ons sal aan mekaar getrou wees en mekaar liefhê. Ek sal altyd aan jou getrou bly. Daaraan sal jy weet dat Ek die Here is. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek doen waarvoor hulle gebid het. Ek sal wolke in die lug gee. Dit sal reën op die grond wat so dors was. Die aarde sal die reënwater opsuig. Die aarde sal dan koring en wyn en olie gee. Ek sal na die gebed van Jisreël luister. Die oes wat uit die land uit kom, sal vir hulle kos gee. Ek sal jou terugvat Jisreël toe. Ek sal jou daar laat bly. Ek sal lief word vir Lo-Rugama vir wie Ek nie omgegee het nie. Ek sal vir Lo-Ammi wat nie aan My behoort nie, sê: ‘Nou is jy weer my volk.’ En hy sal vir My sê: ‘My God.’” Toe het die Here vir my gesê: “Gaan leer jou vrou van voor af liefkry, al is sy ’n getroude vrou wat rondslaap. Dit is net soos die Here wat die Israeliete liefhet, al loop hulle agter vreemde gode aan. Ek gee vir hulle om al het hulle ’n smaak vir seksuele speletjies en eet hulle broodjies wat van rosyne gemaak is om die afgode te plesier.” Ek het haar toe gaan terugkoop van haar nuwe man. Ek het vir hom geld en 150 kilogram gars en wyn vir haar gegee. Ek het haar gewaarsku: “Jy sal vir ’n hele tyd by die huis moet bly. Jy mag nie rondloop nie. Jy mag nie by ’n ander man slaap nie. Ek sal dieselfde doen. Ek sal aan jou getrou bly. Ek sal nie gaan rondloop nie.” Net so sal die Israeliete vir ’n hele tyd lank sonder ’n koning of ’n leier moet klaarkom. Hulle sal nie iets aan afgode kan offer nie. Daar sal nie regop klippe in die grond geplant wees om by te bid nie. Daar sal ook nie beeldjies of huisgodjies wees om voor raad te vra nie. Daarna sal die Israeliete terugkom. Hulle sal na die Here hulle God begin soek. Hulle sal vra of daar miskien nog afstammelinge van koning Dawid oor is. Aan die einde van die tyd sal hulle versigtig na die Here toe kom. Hulle sal verlang na die goeie dinge wat Hy vir hulle gegee het. Hoor wat sê die Here oor Israel: “Die Here maak ’n hofsaak teen die mense wat in die land bly. Hy kla hulle aan dat daar niemand in die land is wat nog getrou is aan God en by Hom bly nie. Hulle ken nie meer die Here nie. Deur die hele land word daar gevloek en bedrieg, gemoor en gesteel. Hulle mans en vroue verneuk mekaar. Hulle gaan mekaar te lyf. Dis die een bloedbad op die ander. Dit het droogte in die land gebring. Almal in die land gaan dood van die dors. Die wilde diere in die veld, die voëls in die lug en selfs die visse in die see gaan almal dood.” “Moenie die volk beskuldig nie. Moenie aanklagte maak teen die volk nie. Jy moet eerder ’n saak maak teen die man wat by God se huis die offers bring. Hy maak foute in die dag. Hy en die man wat God se boodskap bring, maak verkeerde besluite in die nag. Ek sal sy familie saam met hom laat doodgaan. “My volk boer agteruit omdat hulle My nie meer ken nie. Die man by God se huis is die oorsaak daarvan. Jy moet die pad vir die volk wys, maar jy het nie belanggestel om hulle van My te leer nie. Ek stel daarom ook nie verder belang dat jy vir My moet werk nie. Jy het vergeet om jou volk te leer wat die Here wil hê. Daarom gaan Ek ook vergeet van jou nageslag wat ná jou die werk moet voortsit. Jou nageslag het al meer geword. Daar het al meer mense gekom wat vir God moet werk. Maar soos hulle al meer geword het, het die mense wat nie na My wil luister nie, ook al meer geword. Mense het gedink dat julle belangrik is. Ek gaan dit verander. Hulle gaan in die toekoms niks van julle dink nie. “Die mans wat die offers bring, kry voordeel uit die offers wat my volk bring om vir hulle sonde te betaal. Hulle wens selfs dat die volk nog meer verkeerde dinge moet doen. Hoe meer sonde die volk doen, hoe meer moet hulle offers vir die Here bring. Omdat die priesters ’n deel van die offer kry om te eet, beteken meer offers vir hulle meer kos. Die mans wat die offers bring, is maar net soos die volk. Hulle doen maar net soveel sonde. Ek sal hulle straf vir wat hulle doen. Hulle oortredings gaan op hulle eie kop terugkom. Al eet hulle hulle knuppeldik aan die vleis wat geoffer word, sal hulle nooit genoeg kry nie. Al slaap hulle by die vroue wat saam met hulle werk, sal hulle nooit kinders hê nie. Hulle het mos van die Here vergeet. Om met slegte vroue deurmekaar te raak en jou aan wyn en drank oor te gee, veroorsaak dat ’n mens niks meer raaksien nie. Dit laat jou vergeet van die Here en wat jy vir Hom moet doen.” “My volk verwag dat die stuk hout waarvan hulle ’n afgod gemaak het, vir hulle sal sê wat hulle moet doen. Hulle verwag dat ’n stok vir hulle die waarheid sal vertel. Hulle het losbandig geword. Hulle het soos ’n vrou geword wat agter mans aanloop. Hulle het die Here heeltemal vergeet. Hulle bring offers bo-op die berge. Hulle verbrand hulle offers op die heuwels onder die digte skaduwee van al die groen bome. Julle dogters het prostitute geword wat by die offerplekke werk. Julle skoondogters het agter vreemde mans begin aanloop. Ek sal nie julle dogters en skoondogters straf vir wat hulle doen nie, want hulle volg maar net die priesters se slegte voorbeeld. Die mans wat die offers bring, gaan slaap by die vroue wat saam met hulle werk. Hulle bring saam met die vroue offers vir die afgode. ’n Volk wat nie meer mooi dink wat hy doen nie, het homself verraai. “Israel, as jy van die Here af wegdwaal, moet jy nie Juda saamsleep dat hy ook skuldig word nie. Juda, jy moenie agter Israel aanloop na Gilgal en Bet-Awen toe waar hulle hulle offers bring nie. Jy moenie ook daar beloftes gaan maak vir die Here nie. Israel is so koppig soos ’n bees wat viervoet vassteek. Hy weier om te kom. Die Here sal hom sommer in die oop veld los. Hy sal losloop soos ’n jong ram wat elke keer losbreek. Laat Efraim maar sy gang gaan. Hy het mos agter afgode aan geloop. As sy leiers smoordronk is, gaan soek hulle slegte vroue. Sy heersers hou meer van skande as van eer. ’n Stormwind het hulle saamgevat. Hulle sal met skande doodgaan omdat hulle vir afgode geoffer het.” “Die priesters moet nou mooi luister. Israeliete, gee ’n bietjie aandag. Die koning en sy gesin moet hulle ore spits. Die Here daag julle almal voor die hof. Hy kla julle daarvan aan dat julle soos ’n strik geword het vir die volk. Die dinge wat julle by Mispa laat gebeur, is vir die volk ’n lokval. Wat julle op Tabor doen, is soos ’n vangnet wat gespan is. Dit is soos ’n wip by Sittim waarin diere gevang word. Ek gaan julle vasvat. Ek weet presies wat in Efraim aan die gang is. Julle kan niks in Israel vir My wegsteek nie. Efraim, jy het My mos verlaat om agter afgode aan te draf. Israel, jy het onaanvaarbaar vir My geword. Wat hulle doen, is so afgryslik dat hulle nooit weer na hulle God toe kan teruggaan nie. Hulle is so besig om afgode met offers te dien dat hulle nie langer aan die Here kan behoort nie. Israel is so voor op die wa dat Ek hom moet aankla. Israel en Efraim val oor hulle eie foute. Selfs Juda sal saam met hulle val. Wanneer hulle met vee en beeste gaan om vir die Here te offer, sal dit te laat wees. Hulle sal Hom nie meer in die hande kry nie. Hy het alreeds weggegaan. Hulle het die Here se Naam sleggemaak. Hulle is soos ’n vrou wat nie getrou bly aan haar man nie. Sy maak skande. Sy het kinders by ’n ander man. Omdat hulle vir die afgode offers bring, gaan Ek binne ’n maand hulle landerye vernietig.” “Blaas op die trompet in Gibea! Roep almal op om te kom oorlog maak. Blaas op die trompet in Rama! Gee die teken vir die oorlog. Gee die oorlogskreet in Bet-Awen! Benjamin, kyk wat Efraim agter jou rug beplan! Efraim gaan sonder twyfel verwoes word wanneer hy die dag veroordeel word. Ek sê dit nou al vir al die families in Israel. Die leiers van Juda in die suide steel die grond van Israel in die noorde. Hulle verskuif die grense al verder na die noorde toe. Ek gaan my straf soos water op hulle uitgooi. “Efraim het seergekry. Hy is niks werd nie. Hy het mos besluit om agter dinge aan te gaan wat vir hom niks in die sak kan bring nie. Ek sal vir Efraim in die noorde wees soos ’n seer wat sweer. Ek sal vir Juda in die suide wees soos iets wat vrot. Wanneer Efraim sien hoe siek hy is en Juda na sy sweer kyk, sal Efraim hulp gaan soek by die groot koning van Assirië. Daardie koning sal niks daaraan kan doen nie. Hy kan nie die sweer weer gesond maak nie. Ek sal soos ’n leeu vir Efraim verskeur. Ek sal soos ’n jong leeu vir Juda uitmekaarskeur. Ek sal my prooi wegsleep. Niemand sal hulle uit my bek kan red nie. Ek sal soos ’n leeu teruggaan na my wegkruipplek. Ek sal vir hulle lê en wag. Hulle sal na My kom soek om te erken dat hulle verkeerd was. Wanneer hulle in die nood raak, sal hulle My kom vra om hulle te help.” “Die volk sê: ‘Kom ons gaan terug na die Here toe. Hy het ons nou wel uitmekaargeskeur, maar Hy kan ons weer gesond maak. Hy het ons stukkend geslaan, maar Hy sal ons wonde verpleeg. Hy sal ons binne twee dae weer aan die lewe kry. Binne drie dae is ons weer op die been en perdfris om voor Hom te staan. Kom ons maak ons vas aan die Here. Ons span ons in om Hom beter te leer ken. So seker soos dit lig word in die oggend; so seker soos daar reën in die lente kom en die aarde natmaak, net so seker sal die Here na ons toe kom om ons te red.” “Die Here sê: ‘Wat op aarde moet Ek met jou aanvang, Efraim? Wat moet Ek met julle maak, Juda? Julle bly net so lank getrou aan My soos mis wat voor die son verdwyn. Dit hou net so lank soos dou wat vroeg in die oggend al verdwyn. Dis hoekom Ek julle stukkend getrap het met die woorde van my boodskappers. Dit is hoekom Ek julle met my woorde uitmekaargeskeur het. My besluit oor julle is so helder soos daglig: Ek wil baie eerder hê dat julle by My bly as dat julle van ver af offers vir My slag. Ek wil eerder hê dat julle getrou moet wees aan My as dat julle op altare offers vir My verbrand. “Daar by die dorp Adam het hulle my ooreenkoms met hulle verbreek. Hulle het nie aan My getrou gebly nie. Gilead is ’n stad vol kwaaddoeners en moordenaars. Die mans wat daar offers bring, is soos rowers wat mense langs die pad Sigem toe voorlê om hulle dood te maak. Hulle het gruwelike dinge gedoen. Ek het gesien daar gebeur iets vreeslik leliks in Israel. Ek het daar gesien hoe Efraim soos ’n slegte vrou agter ander gode aanloop. Ek het gesien hoe Israel soos ’n ontroue vrou haar man verkul. Maar ook vir jou, Juda, wag daar ’n dag dat Ek met jou gaan afreken. Ek gaan kom en alles by my volk verander.” “Die oomblik wanneer Ek Israel weer gesond wil maak, word dit duidelik wat Efraim verkeerd gedoen het. Dit word duidelik wat daar in Samaria gebeur. Hulle bedrieg mekaar. Die dief breek in om te steel. Hulle beroof mekaar op straat. Hulle dink nie eers daaraan dat Ek alles onthou wat hulle verkeerd gedoen het nie. Ek onthou al hulle oortredings wanneer hulle voor My staan.” “Die koning is baie tevrede met die slegte dinge wat sy mense doen. Sy leiers glo al die leuens wat hulle verkoop. Intussen is hulle almal onderduimse rugstekers. Hulle staan net hulle kans en afwag. Dit is soos ’n warm oond wat staan en wag terwyl die bakker besig is om die deeg te knie om te kan rys. By die koning se partytjie maak hulle sy leiers dronk met wyn. Die koning stel ’n heildronk in op die mense wat met hom spot. Deur die nag beplan hulle om die koning dood te maak. Hulle is soos ’n oond wat wag om gebruik te word. In die oggend vat dit vlam. Soos die oond vlam hulle skielik op en verbrand hulle leiers. Hulle vermoor al hulle konings. Nie een van die konings het My kom vra om hulle te help nie.” “Efraim het met volke deurmekaargeraak wat nie in die Here glo nie. Hy het soos ’n ding geword wat net halfpad gaargemaak is en wat niemand kan eet nie. Mense wat hy nie eens ken nie, het sy geld gevat. Hy het dit nie eens agtergekom nie. Hy was nie eens bewus daarvan dat hy oud geword het nie. Niemand hou van Israel wat so verwaand is nie. Hy is te hoogmoedig om terug te kom na die Here sy God. Na alles wat met hom gebeur het, is hy steeds te trots om die Here te kom vra om hom te help. “Efraim is soos ’n duif wat sonder koers rondfladder. Hulle soek hulp by Egipte. Hulle hardloop agter Assirië aan. As hulle probeer oorvlieg na hierdie lande toe, lê Ek hulle voor. Ek gooi my vangnet oor hulle uit. Ek bring hulle af grond toe soos wanneer ’n mens ’n swerm voëls hoor kom en hulle met ’n net vang en almal aftrek uit die lug. Daar wag moeilikheid vir hulle, want hulle het van My af probeer wegvlieg. Hulle gaan vernietig word, want hulle het teen my gerebelleer. “Ek wou hulle graag vrygemaak het, maar hulle het My om die bos probeer lei. Wanneer hulle tot My bid, bedoel hulle dit nie regtig nie. Eintlik beledig hulle My wanneer hulle so vir My bid. Hulle lê en kerm op die bed net soos wanneer die heidene vir hulle gode bid. Hulle kerf hulle stukkend met messe asof hulle vir ’n afgod bid om vir hulle koring en wyn te gee. “Ek het hulle laat oefen om oorlog te maak. Hulle het hulle arms sterk gemaak. Hulle het ongelukkig agter my rug ander planne gaan maak. Hulle het na mense gesoek wat hulle kan help. Hulle kon nie sulke mense in die hande kry nie. Hulle het geword soos ’n slap boog wat nie meer kan skiet nie. Hulle leiers gaan in die oorlog dood van die vervloekings wat hulle oor hulleself uitgespreek het. In Egipte spot die mense met hulle.” Die Here sê: “Stuur ’n noodsein uit! Die vyand duik soos valke op Israel af. Israel wou nie langer aan My behoort nie. Hulle wou nie langer doen wat Ek van hulle vra nie. Hulle het my ooreenkoms met hulle verbreek. Hulle roep nou verniet: ‘My God! Israel is getrou aan U!’ Dit is nou te laat. Hulle het klaar al hulle kanse weggegooi. Die vyand is klaar besig om hulle te agtervolg. Hulle het konings aangestel wat Ek nie goedgekeur het nie. Hulle het nie aan My gedink toe hulle hulle leiers gekies het nie. Hulle het beelde van afgode gemaak met hulle silwer en hulle goud. Hierdie beelde veroorsaak dat hulle in die moeilikheid beland. Ek wil niks te doen hê met die kalf wat jy uit goud gemaak het nie, Samaria. Ek is woedend oor julle dit gemaak het. Hoeveel tyd moet verbygaan voordat julle sal leer om sonder afgode klaar te kom? Die kalf wat hulle gemaak het, is ’n ding wat Israel self uitgedink het. ’n Goudsmid het dit vir julle uit goud gemaak. Dit kan mos nie ’n god wees nie! Samaria se kalf sal nog in stukkies gebreek word. Dit gaan julle niks in die sak bring nie. Dit is soos wanneer jy wind saai en al wat jy kry, is ’n stormwind. As koringare nie ryp word nie, kan dit nie gemaal word om meel te maak nie. Selfs al word die koring miskien ryp, kan niks verseker dat dinge nie verkeerd sal loop nie. Ander mense kan jou koring kom steel, dit afoes en dit eet.” “Israel het tussen die nasies weggeraak. Hy het tussen die volke geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie. Efraim is soos ’n wildedonkie wat alleen in die veld ronddwaal. Hy soek na maats. Hy gaan na Assirië toe om iemand te kry wat saam met hom kan bly. Selfs al kry Israel iemand anders onder die nasies wat hom wil help, gaan dit op niks uitloop. Ek sal hulle in ’n hoek vasdruk. Hulle knieë sal onder hulle knak soos pakdonkies wat ’n vrag dra wat te swaar is. Hulle sal soos ’n dier wees waarop die koning en die leiers ’n vrag sit wat te swaar is om te dra. “Efraim het al meer en meer plekke gebou waarop hy offers vir sy sonde kan bring. Efraim het egter die altare wat hy gebou het, gebruik om offers vir die afgode te bring. Dit het net gemaak dat hy al meer en meer teen die Here oortree het. Al skryf Ek hoeveel keer vir Efraim neer wat Ek wil hê hy moet doen, sal hy dit nooit doen nie. Hy sal nie verstaan wat Ek wil hê nie. Hulle hou daarvan om bymekaar te kom om offers te bring en by die offerplekke saam te eet. Die Here hou niks van die manier waarop hulle dit doen nie. Hulle doen dit op presies dieselfde manier as waarop ander nasies dit vir hulle afgode doen. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy gaan hulle straf vir al hulle sondes. Hy sal hulle weer laat teruggaan Egipte toe waar hulle slawewerk gedoen het. “Israel het huise vir sy konings gebou. Juda het mure om sy stede gebou om hulle te versterk. Maar hulle het moedswillig van die Here vergeet. Hy is tog die Een wat hulle gemaak het. Daarom gaan Ek vuur laat uitbreek in hulle stede dat dit kan afbrand. Hulle koning se huis sal tot op die grond afbrand.” “Israel, jy moet ophou om so uitspattig te kere te gaan soos die ander volke. Jy het van jou God af weggeloop soos ’n los vrou. Jy hou daarvan om op elke plek waar die graan gedors word, met vroue partytjies te hou. Jy maak asof die oes die betaling is vir wat jy met die vroue doen. Daar gaan nie langer graan wees om te dors of druiwe om te pluk nie. Daar gaan nie meer kos vir julle wees nie. Daar sal nie langer druiwesap wees van die druiwe wat julle uitgetrap het nie.” “Julle kan nie langer in die Here se land bly nie. Efraim sal moet teruggaan Egipte toe. In Assirië sal hulle kos moet eet wat nie vir die Here reg is nie. As hulle daar is, sal hulle nie meer vir die Here offers van wyn kan bring nie. Die Here sal nie tevrede wees met die offers wat hulle daar vir Hom bring nie. Die kos wat hulle daar eet, sal wees soos kos wat vir ’n begrafnis gemaak is. Elkeen wat van daardie kos eet, sal nie langer vir die Here aanvaarbaar wees nie. Die kos wat hulle daar eet, sal hulle net help om aan die lewe te bly. Dit sal nie kos wees waarmee jy na die Here toe kan gaan om dit vir Hom te offer nie. Julle sal nie daar die Here se feesdae kan vier nie. Dit sal nie moontlik wees om die feeste te hou wat die Here van julle vra nie. Dié wat dit regkry om van die Assiriërs weg te kom, sal in elk geval in Egipte gevang word. Die Egiptenaars sal hulle doodmaak en in Memfis begrawe. Daar sal bossies en dorings groei op die plekke waar hulle gebly het. Oor elke plek wat vir hulle kosbaar was, sal daar gras groei.” “Die tyd het gekom om die boete te betaal. Die tyd is hier om die skuld wat hulle gemaak het, bymekaar te tel. Israel gaan baie goed besef dat dit nou sulke tyd is. Julle sê die man wat God se boodskap bring, is mal. Julle sê die man in wie God se Gees is, is stapelgek. Julle sê so omdat julle sonde so groot is. Julle voel skuldig. Dit is hoekom julle met hom wil baklei as hy met julle praat. Die Here se boodskapper moet kyk wat Efraim doen. Waar die boodskapper ook al gaan, kyk hulle heeltyd of hy nie miskien iets verkeerds doen nie. Selfs waar daar vir die Here geoffer word, hou hulle aan om hom soos ’n vyand te behandel. Hulle gaan agteruit en word so sleg soos destyds by Gibea. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy sal hulle vir elke sonde straf.” “Toe Ek destyds op Israel afgekom het, was Ek so opgewonde soos iemand wat in die woestyn loop en skielik op druiwe afkom. Toe Ek julle voorouers ontmoet het, was dit soos iemand wat na ’n vyeboom gaan en die eerste vroeë vye aan die boom kry. Maar by Baäl-Peor het hulle vir Baäl gekies. Hulle het toe vir My net so afstootlik geword soos hierdie afgod vir wie hulle so lief is. “Die respek wat ander mense vir Efraim gehad het, sal verdwyn. Dit sal wees soos ’n voël wat wegvlieg. Sy vroue sal nie meer kinders hê nie. Hulle sal nie weer babas verwag nie. Hulle sal dit selfs nie eens regkry om weer te verwag nie. Selfs die kinders wat hulle het om groot te maak sal doodgaan. Hulle sal glad geen kinders meer oorhê nie. Daar gaan groot teëspoed oor hulle kom as Ek die dag besluit om niks meer met hulle te doen te hê nie. “Efraim het vroeër vir My gelyk soos ’n jong plantjie wat baie groot gaan word as jy dit in vrugbare grond plant. Nou moet Efraim soos ’n plant afgesny word. Hy moet sy kinders wegstuur om doodgemaak te word.” Wat kan ’n mens by die Here vra vir mense met wie dit so gaan? Al wat ek kan vra, is dat hulle liewer nie kinders moes gehad het om so te verloor nie. Die Here sê: “Al hulle verkeerde dinge het by Gilgal begin. Ek het daar al gesien dat Ek nie van hulle hou nie. Ek gaan hulle uit my land wegjaag omdat hulle sulke verkeerde dinge doen. Ek het hulle nie meer lief nie. Al hulle leiers is mense wat net hulle eie kop wil volg. “Efraim is soos ’n plant waarvan die wortels iets oorgekom het. Sy wortels het begin doodgaan. Hy kan nie meer vrugte dra nie. Selfs al dra hy nog vrugte en al bring hy nog kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat doodgaan. Dis verby met hulle kinders, al is hulle ook hoe lief vir die kinders.” Ek het toe gesê: “God het hulle weggegooi. Hulle het nie na die Here geluister nie. Hulle word mense wat nie ’n plek het om te bly nie. Hulle swerf rond onder die nasies.” “Israel was soos ’n wingerd. Daar het swaar druiwetrosse aan hom gehang. Hoe voorspoediger dit egter met hom gegaan het, hoe meer offerplekke het hy vir die afgode gebou. Hoe groter die oeste was wat hy bymekaargemaak het, hoe mooier was die regop klippe wat hy vir die afgode in die grond geplant het. Israel sal gestraf word omdat hy ook afgode gedien het. Die Here sal al daardie offerplekke wat hulle gebou het, met die grond gelykmaak. Hy sal daardie klippe omgooi wat hulle ingeplant het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het nie meer ’n koning nie. Ons het mos nie respek vir die Here gehad nie. Maar wat maak dit in elk geval saak? ’n Koning sou nou niks vir ons kon doen nie.’ Hulle praat baie maklik. Hulle maak beloftes wat niks beteken nie. Hulle sluit ooreenkomste wat hulle niks help nie. Die uitsprake wat hulle regters in die hof maak, het geen betekenis nie. Dit is soos gifplante in die veld waarmee jy niks kan doen nie. “Die mense wat in Samaria bly, gaan sleg voel oor die kalf by Bet-Awen wat van goud gemaak is. Die volk en die mans wat vir hom offers gebring het, sal oor hom huil. Hulle sal hardop huil omdat hy nie meer belangrik is nie. As hulle Assirië toe gaan, sal hulle die kalf saamvat om dit vir die koning van Assirië present te gee. Efraim sal in die skande kom. Israel gaan skaam wees dat hy ooit op die beeld vertrou het. Samaria sal afgebreek word. Sy koning sal weggevat word. Hy sal soos ’n stuk hout wees wat op die water wegdryf. Die koppies by Awen waarop Israel sy offers vir die afgode gebring het, sal kaal en verlate daar lê. Daar sal dorings en bossies groei bo-oor die altare wat hulle gebou het. Hulle sal die berge soebat: ‘Val tog asseblief op ons!’ Hulle sal vir die heuwels vra: ‘Maak ons heeltemal toe. Steek ons weg.’” “Van Gibea se tyd af het Israel maar net aangehou om sonde teen die Here te doen. Hulle het net nooit opgehou nie. Is daar dan ’n beter plek as Gibea waar die oorlog teen hierdie oortreders kan begin? Ek het besluit dat Ek hulle sommer self sal aanval. Die nasies sal saamstaan om teen hulle oorlog te maak. Hulle sal hulle kom straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. “Aan die begin was Efraim soos ’n jong bees wat geleer was om oor die graan op die dorsvloer te loop om dit uit te trap. Sy was gewillig om hierdie maklike werk te doen. Ek het toe ’n juk op haar mooi nek gesit om haar te leer om ook die lande om te ploeg. Efraim sou die sooie omploeg. Juda sou agterna kom en die grond plat eg. Ek het vir hulle gesê: ‘Plant in die grond wat reg en billik is, en julle sal liefde daaruit oes. Breek met die ploeg nuwe grond oop. Soek in hierdie tyd na die Here. Hy sal dan kom en Hy sal alles wat goed en reg is, op julle laat kom soos reën wat val.” “Maar julle het alles wat vol haat is in die grond ingeploeg. Julle het toe slegte dade daarvan geoes. Julle sal moet saamleef met dit wat gevolg het toe julle ander begin bedrieg het. Julle het daarop staatgemaak dat julle reg is om in die oorlog te gaan veg. Julle het vertroue gehad in julle weermag. Daar gaan groot oorlog teen jou volk kom. Die skuilplekke wat jy gebou het, gaan inmekaarstort. Dit gaan ’n slagting vol bloed wees. Dit sal net so erg wees soos die dag toe Salman teen Bet-Arbel oorlog gemaak het. Toe is ma’s saam met hulle kinders doodgeslaan. Dit is wat met julle by Bet-El gaan gebeur. Omdat julle so baie kwaad gedoen het, gaan julle verloor. Die koning van Israel sal sommer al aan die begin van die geveg doodgemaak word.” “Toe Israel nog ’n seuntjie was, was Ek al lief vir hom. Ek het hom uit Egipte uit laat kom om my seun te kom word. Hoe meer Ek egter na hulle geroep het, hoe meer het hulle agter afgode aangeloop. Hulle het vir die Baäls offers gebring. Hulle het vir die beelde van gode wierook gebrand. “Ek self het babatjie Efraim geleer om te loop. Ek het Efraim soos ’n babatjie in my arms rondgedra. Ek het hulle vertroetel. Nou wil hulle dit nie meer onthou nie. Ek het vir hulle omgegee. Ek het met liefde saam met hulle geloop. Ek was vir hulle soos iemand wat by ’n dier kom wat swaarkry en die swaar gewig van sy nek afhaal. Ek het vir hulle kos gegee. Maar hulle weier steeds om na My toe terug te kom. Hulle sal nie na Egipte toe hoef terug te gaan nie. Assirië sal hulle baas wees. Die vyand sal hulle stede aanval. Hulle sal die hekke van hulle stede afbreek. Hulle sal hulle eie planne moet maak om te bly leef. My volk word nie moeg om van My af weg te loop nie. Ek roep hulle om terug te kom, maar hulle weier om ’n voet te versit.” “Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou. Ek sal nie in woede teen jou losbars nie. Ek sal nooit so ver gaan om Efraim heeltemal uit te roei nie. Ek is immers God. Ek is nie ’n mens nie. Ek is die hoë God wat by julle woon. Ek sal nie met my woede op julle lostrek nie. My volk sal weer agter die Here aangaan. Die Here sal brul soos ’n leeu. En as sy welpies dit hoor, sal hulle begin bewe. Hulle sal baie versigtig uit die weste na Hom toe kom. Hulle sal soos voëls terugvlieg uit Egipte en Assirië. Hulle sal stadig nader kom soos ’n duif. Ek sal hulle weer in hulle eie huis laat bly. Dit is wat die Here sê.” “Efraim probeer My om die bos lei met leuens. Israel lieg vir My. Juda sê hy is getrou aan My, maar hy loop ook agter afgode aan. Hy probeer op twee stoele sit. Efraim mors sy tyd met dinge wat niks beteken nie. Hulle hou hulle heeldag besig met leuens en geweld. Hy sluit ’n ooreenkoms met Assirië. Tegelyk onderhandel hy ook met Assirië se vyand. Hy stuur olie na Egipte om in hulle goeie boekies te kom.” “Die Here maak ’n hofsaak teen Juda. Hy gaan Jakob straf vir die manier waarop hy leef. Hy gaan die dinge wat hy doen, teen hom gebruik. Nog voor hy gebore is, het hy sy tweelingbroer probeer bedrieg. Toe hy ’n groot man was, het hy met God geveg. Hy het met die Man uit die hemel gestoei en Hom begin wen. Hy het gehuil en die Man het hom jammer gekry. Die Here het hom by Bet-El gekry en daar met hom gepraat. Dit was die Here, die God van groot krag. Sy Naam is ‘Die Here’. Kom terug na jou God toe. Bly getrou aan die Here. Doen wat Hy vir jou sê. Hou Hom altyd in gedagte.” “Israel is soos Kanaän. Hy is skelm as hy dinge verkoop. Hy probeer altyd mense verkul wat by hom koop. Dan spog Efraim nog en sê: ‘Ek het ryk geword. Ek het ’n miljoenêr geword. Niemand kan ’n vinger na my wys nie. Niemand kan my beskuldig dat ek oneerlik was nie.’” Die Here sê: “Ek is die Here. Ek is julle God. Ek het julle uit Egipte laat wegtrek. Ek sal julle weer in tente laat bly soos die tyd in die woestyn. Toe het Ek in my tent tussen julle gebly. Ek het met julle gepraat deur my boodskappers. Ek het hulle baiekeer dinge in drome laat sien om julle te waarsku. Ek het boodskappers met julle laat praat. Hulle het vir julle alles verduidelik met die woordbeelde en vergelykings wat hulle gebruik het. “In Gilead bid hulle tot afgode. Daardie beelde sal verdwyn. In Gilgal offer hulle bulle. Die offerplekke daar sal inmekaarval. Dit sal word soos klippe wat uit die landerye gehaal is om dit skoon te maak en op hope gegooi is. “Jakob moes Aram toe vlug. Hy moes daar skape oppas net om ’n vrou te kry. Maar dit was deur sy boodskapper dat die Here Israel se nageslag uit Egipte gelei het. God se boodskapper het hulle op die regte pad gehou. “Efraim het die Here kwaad gemaak. Hy moet doodgemaak word omdat hy die Here uitgetart het. Die Here sal hom straf omdat hulle sy Naam sleggemaak het.” “As Efraim se familie gepraat het, was die ander families bang en het na hom geluister. Efraim was die leier van Israel. Hulle het ’n fout gemaak toe hulle Baäl begin aanbid het. Hulle sal met hulle lewe vir hulle sonde moet betaal. Maar hulle doen selfs nog meer as dit. Hulle maak vir hulleself beelde van die afgode om daarvoor te buig. Hulle dink die afgode uit. Hulle maak uit silwer vir hulle beelde volgens hulle idees oor hoe die gode lyk. Maar dit bly tog maar net goed wat iemand uit silwer vir hulle gemaak het. Nogtans sê hulle: ‘Mens, offer vir die god. Buig voor die kalf en soen hom.’ Omdat hulle goed aanbid wat mense gemaak het, sal hulle nie vir altyd bly staan nie. Hulle sal verdwyn soos die vroeë oggendmis voor die son verdwyn. Hulle sal wees soos dou wat vroeg in die oggend al verdamp. Hulle sal wees soos kaf wat die wind van die dorsvloer af wegwaai, soos rook wat by ’n skoorsteen uitgaan en in die wind wegwaai. “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte gered. Julle behoort nie aan enige ander god nie. Julle behoort net aan My. Daar is niemand anders wat julle kan verlos nie. Dit is net Ek wat julle uit julle probleme kan red.” “In die woestyn het Ek vir hulle gesorg. Dit was droog daar en daar was nie water nie. Toe hulle daarna in ’n vrugbare land kom, was hulle soos skape wat hulle knuppeldik gevreet het. Hulle het gedink dat hulle My nie meer nodig het nie. Hulle het die rug vir My gedraai asof Ek oorbodig was. Ek het daarom vir hulle soos ’n leeu geword wat hulle wil verskeur. Ek is vir hulle net soos ’n luiperd wat langs die pad lê en wag dat sy prooi moet kom. Ek sal hulle aanval soos ’n woedende beer as iemand haar kleintjie by haar probeer wegvat. Ek sal hulle uitmekaarskeur. Ek sal daar langs die pad gaan lê en hulle opvreet soos ’n leeuwyfie. Wanneer Ek klaar is, sal die wilde diere van die veld hulle verder uitmekaarskeur en opvreet. “Ek gaan jou uitroei, Israel. Ek het jou gehelp, maar jy het die rug vir My gedraai. Waar is jou koning nou? Waar is die een wat jou kon kom help het toe die vyand jou stede aangeval het? Waar is die regters nou vir wie jy gevra het om vir jou ’n koning en leiers te gee? Ek was al klaar vies vir julle toe Ek vir julle ’n koning gegee het. Ek is nou woedend vir julle as Ek hom by julle wegvat.” “Ek het Efraim se oortredings opgeteken. Sy sonde staan op papier. Efraim is soos ’n kind wat nie verstand het nie. Hy is domastrant. Hy is soos ’n ongebore baba in sy ma se lyf wat nie in die wêreld wil kom as dit tyd is om gebore te word nie. Sal Ek keer dat hulle doodgaan? Sal Ek hulle verlos uit die dood? Nee wat, laat die dood maar kom met sy rampe. Laat die dood sy pyn bring. Ek voel niks meer vir hulle nie. Al het Efraim ook vooruitgegaan en bo die ander uitgestyg, die Here sal hom laat doodgaan. Die Here sal ’n oostewind stuur wat uit die woestyn waai en alles laat uitdroog. Sy land sal verdroog. Sy waterputte sal opdroog. Sy fonteine sal gaan staan. Die wind sal alles wat goed was in sy land, wegwaai. “Samaria sal betaal vir sy skuld. Hy het mos met sy God baklei. Die vyand sal sy mans met swaarde doodmaak. Sy kinders sal uitgeroei word. Hulle sal vroue wat babas verwag met swaarde oopsny.” “Israel, jy moet teruggaan na die Here jou God toe. Jou sonde het jou laat struikel. Dit het jou op die grond laat val. Kom na God toe en sê vir Hom dat jy verkeerd was. Kom terug na die Here toe. Bid tot die Here: “Vergeef ons tog al ons sonde. Ons is jammer daaroor. Aanvaar tog ons verskoning oor ons sonde. Ons belydenis is die offer wat ons bring om ons sake met U weer reg te stel. Assirië kan ons nie red nie. Ons kan nie op ons weermag en ons wapens vertrou nie. Ons kan nooit weer vir die gode wat ons met ons eie hande gemaak het, sê ‘My god’ nie. ’n Kind wat niemand het om vir hom te sorg nie, kan maar net by U die liefde en die versorging kry wat hy nodig het.” Die Here sê: “Ek sal die siekte wat jy gehad het, gesond maak. Ek sal genesing bring. Jy sal nie weer wil wegloop van My af nie. Ek sal jou vreeslik liefhê. Ek sal glad nie meer vir jou kwaad wees nie. “Ek sal vir Israel wees soos die dou wat ’n lelie laat blom. Sy wortels sal hom so stewig anker soos die bome teen die Libanonberg geanker is. Sy takke sal so welig uitgroei soos die takke van ’n mooi olyfboom. Hy sal so lekker ruik soos die plante teen die Libanonberg. Hulle sal weer onder die skaduwee van my takke kom bly. Hulle sal vooruitgaan soos graan wat op die land staan en wieg in die wind. Hulle sal uitloop en groei soos wingerdranke. Hulle sal weer ’n goeie naam hê soos die beroemde naam van die Libanonwyn. Efraim, jy het niks verder met afgode te make nie. Ek het jou klaar gestraf. Ek het jou nou weer teruggevat om vir jou te sorg. Ek is vir jou soos ’n boom wat altyd blare het en altyd vrugte dra. By My sal daar altyd vir jou vrugte wees.” Die een wat verstand het, sal verstaan wat hierdie woorde beteken. Iemand wat sake begryp, sal snap waarop hulle dui. Die pad wat die Here loop, is ’n reguit pad. Mense wat opreg is, volg dieselfde pad. Mense wat niks van die Here wil weet nie, verdwaal op daardie pad. Hier volg die Here se boodskap aan sy volk deur Joël, die seun van Petuel. Luister hierna, leiers van die volk! Maak oop julle ore, inwoners van die land! Het julle al ooit so iets in julle geskiedenis beleef? In die jare wat kom, moet julle dit vir julle kinders vertel. Hierdie aaklige verhaal moet van geslag tot geslag oorvertel word. Die een swerm sprinkane na die ander het in julle oeste ingevaar. Wat die een swerm gelos het, het die volgende een verwoes. Hulle het aangehou om in julle oeste in te vlieg totdat hulle alles opgevreet het. Word wakker en huil, julle klomp dronklappe! Al die druiwe waarmee julle nuwe wyn wou maak, is verwoes. Huil oor die wyn wat julle nie meer sal drink nie, julle spul wynsuipers! ’n Groot sprinkaanplaag het ons land getref; hulle is verskriklik sterk, te veel om te tel. Hulle tande is vlymskerp soos dié van ’n leeu. Hulle het ons wingerde verwoes en al ons vyebome opgevreet. Hulle het selfs die bas van die jong lote afgevreet. Net die kaal, wit stamme het oorgebly. Huil van hartseer soos ’n jongmeisie wat rou oor haar verloofde wat dood is voordat hulle kon trou. Luister hoe huil die priesters omdat daar nie koring of wyn is om by die tempel aan die Here te offer nie. Die weiding is weggevreet en die lande verwoes. Van die koringoes, die druiweoes en die olyfoes het daar net mooi niks gekom nie. Begin huil, saaiboere, want die koring en die gars, ja, al die oeste is daarmee heen. Huil, vrugteboere, want die wingerde en die vyeboorde het almal van droogte doodgegaan; al die granaat-, dadel- en appelbome, ja, al die bome in julle boorde het verdroog en is besig om dood te gaan. Boonop het die mense se vreugde heeltemal opgedroog. Trek vir julle rouklere aan en treur, priesters, julle wat die offers op die altaar moet bring. Huil die hele nag deur daar waar julle God dien, want daar is niks meer koring of wyn oor om in die huis van julle God aan Hom te offer nie. Roep nou dadelik ’n vasdag uit. Almal moet uit berou oor hulle sondes ophou eet. Belê ’n gemeentevergadering. Kry die leiers en die hele volk in die woonplek van die Here julle God bymekaar. Pleit by die Here om weer goed te wees vir julle. Die dag van die Here is bitter naby, die dag van die Almagtige is ’n dag waarop al die slegte mense vernietig gaan word! Hoe verskriklik gaan hierdie dag nie wees nie! Ons staan en kyk hoe ons kos voor ons oë verdwyn. Ons het niks meer om oor bly te wees wanneer ons in die woonplek van ons God bymekaarkom nie. Die saad gaan dood op ons lande. Ons gaan geen oeste hê nie. Daarom staan die skure leeg, want daar is nie koring om daarin te bêre nie. Die vee bulk en blêr van die honger. Die beeste dwaal oral rond op soek na iets om te vreet, want daar is nie meer kos nie. Tot die kleinvee kry al swaar. Help ons, Here! Ons weivelde en ons bome is verdroog. Dit is of ’n vuur alles rondom ons weggebrand het. Selfs die wilde diere van die veld wag dat U moet ingryp, want al die spruite het opgedroog. Daar is niks vir hulle om te eet of te drink nie. Die son het alles doodgebrand. Blaas op trompette in Sion om die mense te waarsku, maak ’n groot geraas op die berg daar in Jerusalem waar my tempel staan! Bewe, mense van Juda, want die dag waarop die Here na ons toe kom, is naby! Dit sal ’n donker, mistroostige dag wees. Swaar onweerswolke sal in die lug hang. Soos die dagbreek oor die berge verskyn, so skielik sal ’n groot swerm sprinkane verskyn. Hulle sal soos ’n leër soldate lyk. So iets vreesaanjaends is nog nooit voorheen gesien nie, en sal ook nooit weer gesien word nie. Dit is of hulle soos ’n vuur alles voor en agter hulle sal verbrand. Voor hulle lyk die land soos die tuin van Eden, maar wanneer hulle daardeur getrek het, lyk dit net soos ’n woestyn sonder enige lewe. Niks of niemand kan voor hulle wegvlug nie. Hulle lyk soos oorlogsperde wanneer hulle aankom en hulle hardloop ook net so vinnig. Hulle klink soos strydwaens wat op pad is na die slagveld toe wanneer hulle oor die bergtoppe beweeg. Hulle knetter soos droë gras in ’n veldbrand. Hulle lyk net soos ’n magtige leër wat besig is om saam te trek voor die groot geveg. Nasies bewe voor hulle van angs. Almal word bleek van benoudheid! Hulle val aan soos sterk soldate en klim oor die stadsmure soos opgeleide troepe. Hulle ken net een pad en dit is reguit vorentoe. Nie een van hulle verander van koers of kom in die ander een se pad nie. Hulle weet presies wat om te doen. Hulle breek deur elke verdediging asof dit nie bestaan nie. Daar is niks wat hulle kan keer nie. Hulle loop die stad plat en hardloop oor al die mure; hulle klouter soos diewe deur die vensters. Die aarde bewe van skrik wanneer hulle aankom en die hemel sidder; dit word pikdonker rondom hulle; dit lyk of die son en die maan nie meer skyn nie en of die sterre al hulle glans verloor het. Die Here voer sy leër aan met ’n oorlogskreet. Hy roep hulle op om te veg. Dit is ’n reuseleër wat presies doen wat die Here sê. Die dag van die Here is ’n verskriklike dag. Wie sal dit kan oorleef? Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer. Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.” Toe het die Here sy mense en sy land jammer gekry. Hy sê toe: Ek sal sorg dat julle binnekort te veel koring, wyn en olyfolie sal hê. Dan sal die ander nasies wat My nie ken nie, julle nie langer kan spot nie. Ek sal die sprinkane wat as julle vyand uit die noorde gekom het, van julle af wegjaag die woestyn in. Hulle voorpunt sal Ek in die Dooie See laat verdrink en hulle agterhoede in die Middellandse See. Hulle het te veel van hulleself gedink; daarom sal die slegte reuk van dooie liggame oral in die lug bly hang. Hou dadelik op om bang te wees, ploeglande. Wees baie bly en juig, want die Here het ’n groot wonderwerk gedoen. Ook julle, diere van die veld, hou dadelik op om bang te wees, want die weivelde is nou weer groen en daar is vrugte aan die bome. Die vyebome en die wingerde is oortrek van die vrugte. Wees bly, inwoners van Sion, juig tot eer van die Here julle God! Die reën wat van Hom af kom, is ’n teken dat Hy regtig vir julle omgee. Dit is Hy wat die winterreën laat kom het en die lentereën weer laat val het, presies soos voorheen. Daar sal hope koring langs die dorsvloer lê. Die wyn- en olyfperse sal oorloop van die wyn en olie. Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het toe Ek al daardie sprinkane gestuur het om julle oeste te verwoes. Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Dan, Israel, sal julle weet dat Ek regtig by julle is en dat net Ek, die Here, julle God is, niemand anders nie. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Nadat al hierdie dinge gebeur het, sal Ek my Gees oor almal laat reën. Julle seuns en julle dogters sal my boodskap bekendmaak, presies net soos die profete dit gedoen het. Julle oumense sal drome droom wat van My af kom, en julle jongmense sal bonatuurlike visioene sien waarin Ek met hulle praat. In daardie tyd sal Ek selfs my Gees laat kom op mense wat glad nie belangrik is nie. Ek sal ook buitengewone tekens in die hemelruim en op die aarde laat gebeur. Op die aarde sal daar bloedvergieting, vuur en rookwolke wees. In die hemelruim sal die son en die maan pikdonker word. Dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom. Almal wat die Here ernstig smeek om hulle te help, sal op daardie dag gered word. Presies net soos die Here beloof het, sal Hy daar op die berg Sion en in Jerusalem ingryp om al sy mense te help. Almal wat deur die Here geroep is om aan Hom te behoort, sal definitief deel uitmaak van die mense wat gered word. [1-2] In daardie tyd sal Ek baie goed wees vir al my mense in Juda en Jerusalem, sê die Here. Maar Ek sal al die ongelowige volke in die vallei van Josafat bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle terugkry omdat hulle my volk, Israel, uit hulle eie land verdryf het en my land vir hulleself gevat het. *** Daardie slegte spul het mos lootjies getrek om te sien wie van hulle my volk sou kry om as slawe vir hulle te kom werk. Hulle het jong seuns en dogters as slawe verkoop om prostitute en drank in die hande te kry. En julle, Tirus en Sidon, en al die woonplekke van die Filistyne, wat probeer julle aan My doen? Dink julle miskien dat julle My kan terugkry oor iets wat Ek gedoen het? Wel, dan wag daar ’n groot verrassing op julle! Pas op, want voor julle julle oë kan uitvee, gaan Ek julle onderstebo loop. Ek sal al julle slegte planne teen julle gebruik! Julle het al die silwer en goud en kosbare skatte wat aan My behoort, weggevat en in julle heidense tempels gaan sit. Julle het die mense van Juda en Jerusalem ver uit hulle land weggevat en hulle aan die Grieke verkoop. Maar Ek sal hulle laat terugkom van al daardie plekke af waarheen julle hulle as slawe verkoop het. En dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen as wat julle met hulle gedoen het. Ek sal julle seuns en dogters aan die mense van Juda verkoop. Hulle sal julle kinders weer aan die mense van Skeba verkoop, wat ver van hier af bly. Dit beloof Ek, die Here! Gee die volgende boodskap vir al die volke wat nie in My glo nie: Maak julle reg vir oorlog! Roep al julle dapper manne. Kry julle soldate gereed om aan te val! Verander julle ploeë in swaarde en julle snoeiskêre in spiese. Selfs die swakstes onder julle moet opgelei word om soos dapper soldate te veg. Julle moet gou maak. Maak al die volke uit die omgewing bymekaar en bring hulle af na die vallei toe. En nou, Here, stuur u magtige leër om al daardie mense aan te val! Ek, die Here, sê: Al die ongelowige volke moet hulle soldate bymekaarmaak en aftrek na die vallei van Josafat toe. Daar sal Ek as Regter optree om hulle almal te straf. Hulle sondes is so verskriklik. Hulle moet afgesny word soos ryp koring met ’n sekel afgesny word. Hulle moet fyngetrap word soos ’n mens druiwe in ’n parskuip trap totdat die wyn oor al die kante stroom. Hordes mense wag nou daar op die plek waar die Here se vyande bymekaar is. Binnekort sal die groot dag van die Here aanbreek wanneer Hy eens en vir altyd met hulle sal afreken. Die son en die maan sal pikdonker word en die sterre sal ophou skyn. Dan sal die Here se stem soos die gebrul van ’n leeu uit Sion opklink. Sy magtige stem daar uit Jerusalem sal die hemel en aarde van vrees laat bewe. Maar vir sy eie mense sal die Here soos ’n wegkruipplek wees waar hulle veilig is teen gevaar. Die Here sal vir hulle wees soos ’n stad met hoë, breë mure wat hulle beskerm teen al hulle vyande. In daardie tyd sal julle besef dat Ek, die Here julle God, daar van my berg Sion af heers. Dan sal Jerusalem se mense volledig aan My behoort en doen wat Ek sê. Geen volk wat My verwerp, sal dit ooit weer inneem nie. In daardie tyd sal die berge vol wingerde wees en daar sal beeste op al die heuwels loop. Al die stroompies in Juda sal vol water wees. In die Here se woonplek sal daar ’n fontein opborrel. Die water sal van daar af afloop na die droë vallei van Sittim toe wat te min water het. Egipte sal dan ’n droë wildernis word en Edom ’n verlate woestyn, want hulle het Juda se inwoners aangeval en onskuldige mense doodgemaak. Maar Juda en Jerusalem sal altyd vol mense wees. Ek sal al my mense se sondes vergewe. Selfs daardie sondes wat Ek nou nog teen hulle hou, sal Ek afskryf en nie weer daaraan dink nie. In daardie tyd sal Ek, die Here, op Sion bly en my krag van daar af bekendmaak. Amos het die Here se boodskap gebring toe Ussia die koning van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was toe koning van Israel in die noorde. Amos het by Tekoa met skape geboer. Twee jaar voor die groot aardbewing het die Here hom ’n gesig oor die Noordryk van Israel laat sien. Hy het so daaroor gepraat: “Die Here brul soos ’n leeu in Sion. Sy stem weergalm deur Jerusalem. Die weivelde vir die diere verdroog. Die gras bo-op Karmel gaan dood.” Die Here sê: “Van al die oortredings van Damaskus is daar spesifiek een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het die mense van Gilead uitgewis. Soos ’n mens met ’n ysterslee graan platsleep, het hy hulle van die aarde af weggevee. My straf sal wees soos vuur wat kom, en die huis van koning Hasael tot op die grond afbrand. Ben-Hadad sit en regeer in sy paleis. Ek sal dit stopsit. Hy sal nie langer koning wees nie. Ek sal die slotte oopbreek waarmee die inwoners van Damaskus die hekke van hulle stad gesluit het. Ek sal almal van Sirië uitroei wat in die laagte van Bikat-Awen bly. Ek sal die leiers van Bet-Eden gryp. Almal wat in Sirië bly, sal gevang en teen hulle sin na Kir toe gevat word.” Dis wat die Here oor Damaskus sê. Die Here sê: “Van al die baie oortredings van Gasa is daar een spesifiek waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het al die mense wat op een plek bly, gaan vang en hulle almal aan Edom uitgelewer. Ek sal die huise waarin die mense in Gasa wegkruip tot op die grond laat afbrand. Ek sal almal doodmaak wat in Asdod bly. Ek sal die koning van Askelon uitwis. Ek sal op Ekron toesak. Al die Filistyne wat nog daar oor is, sal doodgaan.” Dit is wat die Here oor die Filistyne sê. So sê die Here: “Van al die oortredings van Tirus is daar die een waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het ook ’n hele dorp se mense gevang en hulle almal aan Edom gaan uitlewer. Hy het die ooreenkoms wat hy met hulle gemaak het om altyd hulle vriend te wees, in die wind geslaan asof hy dit nooit gemaak het nie. Ek sal ook die huise waarin die mense van Tirus wegkruip tot op die grond laat afbrand.” So sê die Here: “Edom het al baie foute gemaak. Daar is een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nooit sal vergewe nie: hy het sy broersvolk Israel met wapens bly agtervolg sonder om hom te spaar. Hy het ’n vreeslike haat vir Israel wat net nie wil ophou nie. Ek sal ’n vuur in Teman aan die gang sit. Dit sal die skuilplekke van Bosra verwoes.” So sê die Here oor Ammon: “Van alles wat die Ammoniete verkeerd gedoen het, is die ergste een waarvoor Ek hulle net nie kan vergewe nie, dat hulle baklei het om meer grond in die hande te kry. Hulle het nie eens twee maal gedink voor hulle in Gilead vroue wat babas verwag het met swaarde oopgesny het nie. Ek sal ’n vuur in Rabba aan die brand steek. Dit sal hulle huise afbrand. Die dag wanneer die vyand hulle aanval, sal daar oorlogskrete wees. Dit sal wees soos wanneer die stormwind van ’n orkaan jou tref. Die koning van Rabba en sy raadgewers sal gevang en na ’n vreemde land toe weggevat word.” Die Here sê: “Van al die baie sondes wat Moab al gedoen het, is daar een wat Ek altyd teen hom sal hou. Hy het die koning van Edom se eer vernietig. Hy het sy geraamte gevat en dit tot as gaan verbrand. Ek sal oorlog teen Moab laat uitbreek. Sy skuilplekke in Kerijot sal tot op die grond afgebrand word. Moab se mense sal in die oorlog omkom. Hulle sal inmekaarstort wanneer die trompet geblaas word wat die oorlog laat begin. Ek sal Moab se koning uitwis. Ek sal al sy leiers saam met hom laat doodmaak.” So sê die Here oor Moab. Die Here sê: “Van al Juda se baie oortredings is daar een spesifiek wat Ek nooit sal oorsien nie. Hulle het die wet van die Here verwerp. Hulle steur hulle glad nie aan die reëls van die Here nie. Dieselfde gode van leuens en bedrog waaragter hulle voorouers aangeloop het, het hulle laat ontspoor. Ek sal ’n vuur wat alles verteer teen Juda aan die brand steek. Dit sal die skuilplekke in Jerusalem verwoes.” Die Here sê: “Die spesifieke oortreding waarvoor Ek Israel nooit sal vergewe nie, is dat hulle eerlike mense vir geld verkoop. Hulle verkoop die arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie vir so min as die prys van ’n paar sandale. Hulle trap dié wat hulpeloos is, nog verder in die grond in. Hulle is onregverdig met dié wat alreeds swaarkry. Hulle bring my groot Naam in die skande. Pa en seun slaap by dieselfde meisie. Hulle lê by die altaar waar daar geoffer word op klere wat hulle van arm mense gevat het. By die Here se tempel drink hulle die wyn waarmee ander mense hulle boete moes betaal. “Dit was Ek wat die Amoriete uit die land uitgewis het voordat my volk hiernatoe gekom het. Die Amoriete was lank en regop soos sederbome. Hulle was so sterk soos akkerbome. Maar Ek het hulle met wortel en tak uitgeroei. “Dit was Ek wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek het julle 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek. Ek het vir julle die land van die Amoriete gegee. “Ek het julle seuns geroep om my boodskap te bring. Ek het jongmans geroep om hulle hele lewe as nasireërs aan my te wy. Julle, Israeliete, moet nou vir my sê as dit nie so is nie. Julle moet sê as dit nie is wat Ek alles vir julle gedoen het nie,” sê die Here. “Maar julle het die nasireërs wat hulle lewe aan my gewy het, gedwing om hulle belofte te breek. Julle het hulle gedwing om teen hulle belofte in wyn te drink. Julle het my boodskappers se mond toegedruk. Julle het hulle belet om God se boodskap vir julle te bring. “Kyk, Ek sal julle laat vasdraai. Julle sal vasval soos ’n wa in die sand vasval omdat dit te swaar gelaai is. Die vinnigstes onder julle sal nie eens kan wegkom nie. Die krag van die sterkes sal hulle niks help nie. Die dapper helde sal nie eens hulleself kan red nie. Die manne wat met die boog skiet, sal nie teen die aanval kan standhou nie. Die vinnige hardlopers sal nie eens kan wegkom nie. Die soldate op die perde sal niks kan red nie, selfs nie eens hulleself nie. Op daardie dag sal selfs die dapperste vegters hulle wapens neergooi en hardloop vir hulle lewe.” Dit is wat die Here oor Israel sê. Luister wat sê die Here oor julle, Israel. Hoor wat Hy sê van die volk wat Hy uit Egipte laat wegtrek het: “Uit al die nasies wat daar op die aarde is, het Ek julle gekies en My net aan julle verbind. Julle sal vir My moet kom verduidelik hoekom julle dan soveel sonde teen My doen.” Sal twee mense saam die pad vat as hulle dit nie voor die tyd met mekaar so afgespreek het nie? Sal ’n leeu in die bos brul as daar niks is om te vang nie? Sal ’n jong leeu grom as daar nie eens ’n prooi vir hom is nie? Sal ’n voël ooit teen die grond neerslaan as dit nie ’n wip is wat hom gevang het nie? Sal ’n vangstrik toeklap as daar nie iets is wat dit afgetrap het nie? Wanneer die oorlogstrompet blaas, is dit vanselfsprekend dat mense sal skrik. Wanneer ’n ramp ’n stad tref, is dit vanselfsprekend dat dit van die Here kom. Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers gesê het nie. Die leeu het gebrul. Wie is daar wat nie nou bang is nie? My Heer, die Here, het gepraat. Watter profeet sal nie vinnig die boodskap bring nie? Gaan nooi die mense in die paleise van Assirië uit. Gaan roep die mense in die paleise van Egipte. Vra hulle om op die heuwels rondom Samaria te kom staan. Sê vir hulle om te kom kyk hoe deurmekaar alles in die stad is, hoe mense daar verdruk word. “Die mense wat in die stad bly, weet lankal nie meer wat dit beteken om eerlik te wees nie,” sê die Here. “Alles wat hulle met geweld afgeneem en by ander gesteel het, bêre hulle in hulle luukse huise. Daarom,” sê die Here, “sal ’n vyand kom en die land van alle kante af aanval. Hulle sal die mure van die stad afbreek. Hulle sal julle pragtige huise in die stad kom kaalstroop.” Die Here sê: “Al wat iemand wat skape oppas, nog kan red as ’n leeu die skaap gevang het, is sy twee pote of ’n stukkie van sy oor. Net so sal al wat van die mense van Samaria oorbly, die pote van ’n bed wees of ’n stukkie materiaal wat oor ’n bank gegooi word. “Luister nou na My en gaan waarsku Jakob se nageslag,” sê die Here wat met krag regeer. “Die dag wanneer Ek Israel vir sy oortredings straf, sal Ek die altare van Bet-El afbreek. Die horings op die vier hoeke van die altaar sal nutteloos op die grond val. Ek sal die huise waarin hulle in die somer bly, laat afbreek. Ek sal ook hulle winterhuise verwoes. Daar sal niks oorbly van hulle pragtige huise wat met ivoor versier is nie. Hulle groot woonhuise sal heeltemal verdwyn.” So sê die Here oor Israel. Julle ryk vroue wat in Samaria bly, loop oor van die voorspoed soos die vet koeie wat in Basan wei. Julle buit die armes uit. Julle mishandel die behoeftige mense. Julle sê vir julle mans: “Kom, bring die drank dat ons kan drink.” Die Here het by Homself gesweer dat daar ’n dag sal kom dat julle soos beeste met ’n ring deur die neus, soos visse aan vishoeke hier weggevat sal word. Julle sal nie by die stad se hek hoef uit te gaan nie. Die vyand sal die stad se mure afbreek. Julle sal sommer deur die gate in die mure uit die stad kan gaan. Die vyand sal julle wegvat na die berg Hermon toe. Dis wat die Here oor julle sê. “Kom na die plek van aanbidding by Bet-El dat julle daar ’n bietjie sonde kan doen! Kom na die altaar by Gilgal dat julle nog meer verkeerde dinge kan doen! Kom offer elke môre julle offers! Moenie vergeet om elke derde dag julle tiendes vir God te bring nie! “Kom bring maar verkeerde offers wat suurdeeg in het. Spog maar oor die offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Julle Israeliete is mos lief daarvoor om so met julle godsdiens te spog,” sê die Here. “In al julle dorpe het Ek gemaak dat daar nie kos is om te eet nie. Ek het gesorg dat daar in al julle blyplekke niks brood is om te eet nie. Maar nogtans het julle nie daaraan gedink om terug te kom en by My kos te kom vra nie,” sê die Here. “Drie maande voor die oes het Ek die reën laat wegbly. Ek het dit by die een dorp laat reën en glad nie by die volgende dorp nie. Die een stuk grond het mooi reën gekry. Die ander een het uitgedroog, omdat dit glad nie daar gereën het nie. Twee-twee en drie-drie het mense van dorp tot dorp gekruip om water te kry. Daar was nie water vir hulle dors nie. Hulle het dors gebly. En al het dit alles gebeur, het julle nie daaraan gedink om na My toe terug te kom en by My water te vra nie,” sê die Here. “Ek het ’n verskriklike warm wind oor julle tuine laat waai. Ek het siektes in julle druiwe laat kom. Sprinkane het julle vyebome en olyfbome kaalgevreet. Ten spyte van dit alles het julle nie na My toe gekom en My gevra om julle te help nie,” sê die Here. “Ek het rampe oor julle laat kom soos daar destyds in Egipte rampe gekom het. Ek het julle jong soldate wat op perde veg, in die oorlog laat omkom. Daar in die kamp het die stank van die goed wat dood was, dit vir julle ondraaglik gemaak. Maar julle het nie eens daaraan gedink om na My toe terug te kom nie,” sê die Here. “Ek het julle dorpe verwoes, soos Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee het. Party kon nog betyds wegkom, soos ’n stuk hout wat jy betyds uit die vuur uitruk voordat dit heeltemal verbrand. “En al het dit alles gebeur, het julle nie ’n oomblik daaraan gedink om My te kom vra om julle te help nie,” sê die Here. “Omdat jy jou nie aan My wou steur nie, Israel, moet jy jou regmaak om te hoor wat God oor jou besluit het. Die Here het die berge en die wind gemaak. Hy kan vir mense sê wat Hy wil hê. Hy kan die vroeë lig van die môre net so in donker verander. Hy kan groot treë gee bo-oor die bergtoppe van die wêreld. Sy Naam is: ‘Die Here, die God wat sterker is as enigiets of enigiemand.’” Luister na die woorde van die lied wat op julle begrafnis gesing gaan word, Israel: “Israel was ’n jongmeisie. Sy het so diep in die sonde weggesak dat sy nooit weer daar kan uitkom nie. Sy het so diep in die moeras van verkeerde dinge weggesak dat niemand haar ooit weer daaruit kan trek nie.” Die Here sê oor Israel: “Van die stad waarvan daar 1 000 soldate weggegaan het om in die oorlog te gaan veg, het daar net 100 teruggekom wat nog lewe. “Van die dorp waaruit 100 man gaan veg het, het 10 by die huis teruggekom.” Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.” “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.” “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.” “Julle haat mos mense wat regverdig wil wees. Julle is mos hatig op mense wat die waarheid praat in die hof. Omdat julle die armes onderdruk en hulle afpers, sal julle nooit self bly in die mooi huise wat julle vir julle van klip gebou het nie, en sal julle nooit die wyn drink wat uit die wingerde kom wat julle aangeplant het nie. Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense. In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.” “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly. Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.” “Omdat dit gebeur het,” sê die Here, die God wat so sterk is, “sal daar gehuil word op die oop plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. In die strate daarbuite sal hulle loop en roep: ‘Ai tog, ai tog!’ Hulle sal die boer van sy lande af roep en die mense wat betaal word om op begrafnisse te kom huil sodat hulle ook saam kan kom huil. Ek sal deur julle land gaan om julle te straf. By elke plek waar Ek kom, selfs in die wingerde waar die druiwe groei, sal daar gehuil word,” sê die Here. “Daar wag ’n verskriklike teleurstelling vir die mense wat nie meer kan wag dat die dag van die Here moet kom nie. Wat dink julle gaan op daardie dag met julle gebeur? Daardie dag gaan vir julle nag wees. Vergeet daarvan dat dit vir julle ’n dag gaan wees waarop julle gered sal word. Dit sal op daardie dag wees soos iemand wat weghardloop vir ’n leeu en hom dan vashardloop in ’n beer. As hy hardloop om in sy huis te gaan wegkruip en hy druk met sy hand teen die muur, pik ’n slang hom wat tussen die klippe van die muur bly. “Die dag van die Here bring nie vir julle enige uitkoms nie. Dis ’n donker dag van vrees. Daar sal nie enigiets op daardie dag gebeur waarop julle kan hoop nie.” “Ek hou glad nie van hierdie feeste wat julle vir My hou nie. Ek het hoegenaamd geen plesier daarin wanneer julle bymekaarkom om tot My te bid nie. “Ek het niks daaraan wanneer julle vir My offers op die altaar brand of graan vir My kom aanbied nie. Ek sien dit nie eens raak wanneer julle offers bring wat julle saam met My wil eet nie. Dit roer My nie eens as julle diere kom offer wat julle vir My vetgemaak het nie. Spaar My die lawaai wat julle maak as julle vir My sing. Ek wil nie luister na die harpmusiek wat julle vir My maak nie. “Wees eerder regverdig. Laat dit aangerol kom soos branders by die see. Laat eerder alles wat regverdig is deur julle lewe vloei soos ’n rivier wat nooit gaan staan nie. “Het julle toe julle 40 jaar lank in die woestyn was, vir My offers gebring van diere wat julle geslag het of offers waarvan julle julle deel saam met My geëet het daar by my tent, Israel? Was dit nie eerder die stergod koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun wat julle in julle hart saamgedra het nie? “Ek gaan julle vyand laat kom en julle wegvat uit julle land tot ver anderkant Damaskus verby,” sê die Here. “Ek is God. Ek is verskriklik sterk.” Daar wag teëspoed vir dié wat so houtgerus in Jerusalem bly. Dié wat so sonder bekommernis in Samaria woon, gaan ’n groot verrassing kry. Julle is beroemd. Die belangrikes onder Israel hou van julle. Gaan ’n bietjie na Kalne toe en kyk wat het daar gebeur. Gaan van daar af na die groot stad Hamat toe. Gaan af na Gat van die Filistyne. Is julle enigsins beter as daardie stede dat daar nie dieselfde met julle sal gebeur nie? Het julle ’n sterker en groter land as hulle? Sal dit maak dat niks met julle gebeur en julle niks oorkom nie? Julle probeer by die dag van teëspoed verbykom. Intussen bring julle met alles wat julle doen, daardie dag van straf net al nader aan julle. Julle slaap op beddens wat met ivoor mooi gemaak is. Julle lê en eet op rusbanke. Julle is lekkerbekkig en eet net sagte lam- en kalfsvleis. Julle maak allerhande liedjies om op die harp te speel. Soos Dawid maak julle vir julleself musiekinstrumente. Julle drink wyn uit die bekers wat vir die offers gebruik word. Julle smeer julleself met lekkerruikolie. Maar julle bekommer julle nie ’n oomblik oor die einde van Josef se nasate nie. Daarom sal julle die eerstes wees wat die vyand gaan vang om julle weg te vat na ’n ander land toe. Julle lawaaierige partytjies gaan dan verby wees. Die Here het vir Homself ’n belofte gemaak. Die Here, die God wat sterk is, het vir Homself gesê: “Dit is vir My baie lelik dat Jakob se nageslag so selfvoldaan is. Ek vererg My oor hulle mooi huise. Ek gaan hierdie stad met alles daarbinne vir hulle vyand gee. Selfs al bly daar net tien mans oor van een familie wanneer die vyand hulle aanval, sal hulle ook doodgemaak word. Wanneer iemand van hulle familie die lyk kom haal om dit te gaan verbrand en hy vra vir iemand wat agter in die huis wegkruip of daar nog enigiemand anders in die huis oor is, sal dié persoon sê: ‘Nee, ek is die laaste.’ Hy sal vir die man wat die lyk kom haal het, waarsku. Hy sal sê: ‘Saggies! Die Here moenie hoor hier is nog iemand oor nie.’ Die Here sal opdrag gee dat elke huis, van die grootste tot die kleinste, platgeslaan word. Daar sal net murasies oorbly.” Kan perde oor rowwe rotse galop? Kan ’n mens die see met osse omploeg? Natuurlik nie! Maar julle het reggekry wat ander mense nie kan doen nie. Julle het van dit wat goed en reg is iets giftigs gaan maak. Wat regverdig was, het julle iets gemaak wat verkeerd is. Julle is bly oor ’n plekkie soos Lo-Dabar, wat eintlik niks beteken nie. Julle spog dat julle met julle horings en julle eie krag Karnajim (wat “horings” beteken) ingeneem het. “Maar kyk wat gaan gebeur wanneer Ek ’n ander volk bring om oor julle te heers, Israel,” sê die Here, die God wat so sterk is, “hulle gaan julle onderdruk van Lebo-Hamat in die noorde af tot by Arabaspruit in die suide.” Die Here het my in ’n gesig ’n swerm sprinkane laat sien. Die gras vir die koning se perde was net mooi afgesny en die eerste grassies het weer begin uitspruit. Die swerm sprinkane het op die gras toegesak. Toe ek sien dat hulle al die nuwe gras gaan wegvreet, het ek gesê: “Here, moet asseblief nie so hard wees nie. Jakob is mos maar klein en swak. Hoe sal hulle na so iets nog kan bly leef?” Die Here het hulle toe jammer gekry. Hy het gesê: “Ek sal dit nie met hulle laat gebeur nie.” Die Here het my in ’n gesig laat sien hoe Hy ’n skroeiende vuur gebruik om sy volk mee te straf. Dit het eers die onderaardse water laat opdroog. Toe dit ook die grond begin wegbrand, het ek by die Here gepleit: “Hou asseblief tog op. Hoe sal die swak en nietige Jakob na so iets nog kan bly leef?” Die Here het toe sy plan verander. Hy het gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.” Die Here het my in ’n gesig laat sien waar Hy by ’n muur staan. Hy het ’n maatband in sy hand gehou. Die Here vra toe vir my: “Amos, wat sien jy, wat het Ek hier in my hand?” Ek antwoord toe: “’n Maatband waarmee ’n mens meet of alles volgens die planne gebou is.” Die Here sê toe: “Ek gaan hierdie maatband gebruik om my volk Israel te meet. Ek gaan dit nie verder verdra dat hulle so verkeerd leef nie. Die plekke wat Isak gebou het om op te offer, gaan afgebreek word. Van die aanbiddingsplekke wat Israel vir my gebou het, gaan daar net murasies oorbly. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die huis van koning Jerobeam.” Toe Amasia, die priester van die plek van aanbidding by Bet-El, hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n opstand teen u in Israel te organiseer. Die land kan nie sulke dinge laat gebeur nie. Amos loop vir die hele wêreld en vertel dat Jerobeam doodgemaak gaan word en die volk van Israel dan uit die land weggevat gaan word na ’n ander land toe.” Amasia het na Amos toe gegaan en in sy gesig vir hom gesê: “Hier is nie plek by ons vir mense wat allerhande goed sien nie. Gee pad! Gaan terug na Juda toe! Gaan sê vir hulle wat jy alles sien, dat hulle jou daarvoor kan betaal. Hierdie plek van aanbidding by Bet-El is ’n koning se plek. Dit behoort aan die regering van Israel. Jy kan nie aangaan om jou boodskappe hier te bring nie.” Amos het Amasia teruggeantwoord: “Ek bring nie die Here se boodskap vir geld nie. Dit is ook nie my werk nie. My pa was ook nie ’n boodskapper vir God dat ek dit by hom geleer het nie. Ek boer met skape en vye. Die Here het my kom haal daar waar ek met my skape besig was. Hy het vir my gesê: ‘Gaan bring my boodskap vir my volk Israel.’ “Hoor wat sê die Here vir jou, Amasia. Jy probeer keer dat ek die Here se woord vir Israel bring. Jy wil nie hê ek moet vir Isak se nageslag sê wat die Here vir my oor hulle gewys het nie. Die Here het besluit dat jou vrou ’n prostituut gaan word wat op die strate rondlê. Jou kinders sal in die oorlog doodgemaak word. Jou land sal in stukke verdeel word. Jy self sal uiteindelik in ’n vreemde land aan jou einde kom. Israel sal sonder twyfel uit sy land weggevat word na ’n ander land toe.” Die Here het my ’n mandjie vol vrugte laat sien. Toe die Here my vra: “Wat sien jy daar, Amos?” het ek geantwoord: “’n Mandjie vol ryp vrugte.” Die Here sê toe vir my: “My volk Israel is net so ryp om gepluk te word vir sy vonnis. Ek gaan nie toelaat dat dinge so verder aangaan nie. Op die dag van teëspoed,” sê die Here, “sal daar begrafnisliedere in die paleis gesing word. Lyke sal oral in die koning se huis op die grond lê. Bly liewer stil.” Luister ’n bietjie wat die Here vir Homself beloof het, julle wat op die arm mense trap. Julle wat van die behoeftiges in julle land probeer ontslae raak. Julle kan nie wag dat die fees van die nuwemaan verby is sodat julle weer julle deure kan oopmaak en kan aangaan om graan te verkoop nie. Julle wens die Here se rusdag om sodat julle weer julle winkels waar julle koring verkoop, kan oopmaak vir besigheid. Julle is daarop uit om met weegskale waaraan daar gepeuter is, al minder goed vir al meer geld te verkoop. Julle verkoop koring wat met nuttelose kaf gemeng is. Julle verkoop arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie. Julle is bereid om hulle vir so min te verkoop as die geld wat ’n mens kry vir ’n paar sandale. Die Here het gesweer: “Ek sal in der ewigheid nie vergeet wat Israel alles aangevang het nie.” Is dit nie iets wat die wêreld moet ontstel nie? Moet die bewoners van die aarde nie huil as hulle hoor wat julle doen nie? Moet die aarde nie bewe soos alles sidder voor die Nyl wat met geweld afkom en daarna weer terugsak, wanneer hulle hoor hoe die Here julle gaan straf nie? “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek die son laat ondergaan in die middel van die dag. Ek sal dit laat donker word oor die aarde terwyl dit nog helder daglig is. “Ek sal julle vrolike feeste in begrafnisse verander. Julle juigliedjies sal slepende klaagliedere word. Ek sal julle begrafnisklere laat aantrek. Julle sal ’n kaal kol voor op julle kop skeer soos iemand wat rou omdat sy enigste kind dood is. Daardie dag sal in bitterheid eindig.” “Daar is ’n tyd wat gaan kom,” sê die Here, “dat daar ’n hongerte in die land gaan kom. Mense gaan nie honger wees vir iets om te eet of dors vir iets om te drink nie. Hulle gaan honger wees om te hoor wat die Here sê. Hulle sal hoog en laag soek na die woord van die Here. Hulle sal trek van die Middellandse See tot by die Dooie See. Hulle sal oral soek, van die noorde tot in die ooste. Maar hulle sal niks kry nie. Op daardie dag sal die mooi jongmeisies en die sterk jongmans flou word van die dors vir die Here se woord. Dié wat hoog en laag gesweer het by die sonde van Samaria, wat graag gesê het: ‘So waar as die god van Dan lewe,’ of graag gesê het: ‘So waar as daar ’n pad is vir mense wat na Berseba gaan om daar te bid,’ hulle almal sal op daardie dag op die grond neerval. Hulle sal nooit weer opstaan nie.” Ek het die Here by die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die bokante van die pilare stukkend sodat die hele gebou tot in sy fondamente inmekaarstort. Laat die gebou instort op al die mense wat binne-in die tempel is. Dié wat bly leef, sal Ek in die oorlog laat doodmaak. Nie een sal kan wegvlug nie. Daar sal nie een vrykom nie. Al grawe hulle ’n gat tot onder waar die dooies bly om daar weg te kruip, sal hulle nie kan wegkom nie. Ek sal hulle met my eie hand daar gaan uithaal. Al kry hulle dit reg om tot bo in die hemel te klim, sal Ek hulle daar gaan uithaal. Al gaan kruip hulle weg op die top van die Karmelberg, sal Ek hulle daar gaan haal en hulle dwing om af te kom. Al probeer hulle hulleself vir my wegsteek onder in die see, sal Ek die seeslang stuur om hulle daar te gaan pik. Selfs al gaan hulle weg na ’n ander land, selfs al vat die vyand hulle baie ver weg, sal hulle nie van My af kan wegkom nie. Selfs daar sal Ek hulle laat doodmaak. Ek hou hulle dop om met hulle af te reken. Hulle kan nie van My af wegkom nie.” Wanneer die Here, die God wat baie sterk is, selfs net saggies aan die aarde raak, skud die hele aarde. Almal wat daarop woon, begin treur. Alles kom aan die beweeg soos wanneer die Nyl met geweld afkom en ’n spoor van verwoesting agterlaat wanneer dit weer terugsak na waar dit vroeër was. Die Here bou vir Hom ’n solder bo in die hemel. Hy maak sy kelder onder op die aarde. Hy roep die see bymekaar en Hy giet reën uit oor die aarde. Sy Naam is “Die Here”. “Dink die Israeliete dat hulle vir My belangriker is as die Etiopiërs?” vra die Here. “Ek het wel Israel uit Egipte laat wegtrek. Maar Ek het net so die Filistyne uit Kreta laat kom en die Siriërs uit Kir.” My Heer, die Here, hou die koninkryk dop wat so in die sonde verval het. “Ek sal hom laat wegraak,” sê die Here, “maar Ek is glad nie van plan om die nageslag van Jakob heeltemal uit te wis nie. Ek het gesê dat die Israeliete tussen die nasies ingegooi moet word. Hulle moet onder die nasies rondgeskud word soos koring in ’n sif geskud word. Maar daar mag nie een enkele korreltjie uit die sif val en op die grond beland nie. Maar almal uit my volk wat sonde doen, sal met die swaard doodgemaak word, almal wat sê: ‘Die onheil sal ons nie tref nie.’” “Die dag sal kom waarop Ek die huis van Dawid heel sal maak. Soos ’n mens ’n murasie herstel om dit weer ’n huis te maak om in te woon, sal Ek die gate in die muur toestop. Ek sal die mure weer opbou. Ek sal dit herstel om weer te lyk soos dit vroeër gelyk het. Ek gaan Israel oor Edom aanstel. Hy sal in beheer wees van al die nasies waaroor Ek regeer,” sê die Here wat dit gaan laat gebeur. “Daar kom ’n tyd van voorspoed,” sê die Here. “Wanneer die oes skaars bymekaar-gemaak is, sal dit al weer tyd wees om te begin ploeg om die saad in die grond te kry. Die saaityd sal nog aan die gang wees, dan sal dit al weer tyd wees om druiwe te pluk om te pars. Daar sal so baie druiwe wees om uit te trap dat die druiwesap teen die berge sal afstroom. Die heuwels sal oorvloei word met nuwe wyn. “Ek sal my volk Israel se omstandighede verander. Hulle sal terugkom uit die lande waarheen hulle weggevat is. Hulle sal teruggaan na die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle sal woon in die stede wat hulle opgebou het. Hulle sal weer wingerde aanplant en druiwe vir wyn kan pluk. Hulle sal weer tuine hê wat vir hulle groente gee. Ek sal hulle terugplant in die grond wat Ek vir hulle gegee het. Hulle sal nooit weer uit daardie grond uitgetrek kan word nie,” sê die Here jou God. Hier volg wat Obadja gesien het. Hy het gesien die Here het ’n boodskap vir Edom. Die Here het ’n boodskapper uitgestuur om vir die volke te gaan sê: “Kom ons maak reg dat ons teen Edom oorlog kan maak!” Die Here sê vir Edom: Ek gaan maak dat jy nie meer belangrik is onder die nasies nie. Inteendeel, hulle sal op jou neersien. Jy woon hoog in die berge waar jy veilig tussen die rotse is. Jy het egter in jou hart ook hoogmoedig geraak en jouself ’n rat voor die oë gedraai. Jy het jou wysgemaak dat niemand jou van daar sal kan afbring ondertoe nie. Maar die Here sê vir jou: Al bou jy jou nes so hoog bo in die berge soos ’n arend, selfs al gaan bly jy daar bo tussen die sterre, Ek sal jou daar gaan afhaal. Diewe en rowers wat in die nag kom steel, vat nie alles nie. Mense wat druiwe pluk, laat die klein trossies oorbly. Maar jou vyand sal niks vir jou laat oorbly nie. Esau se nageslag sal deursoek word. Alles wat hy probeer wegsteek, sal uitgekrap word. Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het om jou te help sal jou van hulle af wegjaag. Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het dat julle mekaar nie sal aanval nie, sal jou bedrieg en jou in die rug steek. Mense saam met wie jy geëet het, sal vir jou ’n strik stel. Jy sal dit nie eens agterkom nie. Op daardie dag, sê die Here, sal Ek Edom se slim mense by hom wegvat. Ek sal dié wat kennis het uit Edom se berge laat verdwyn. Die dapper soldate van Teman se broek sal bewe. Elke man daar bo in Edom se berge sal doodgemaak word. Jy het die nageslag van jou pa se broer baie hard behandel. Jy behoort jou daaroor te skaam. Omdat jy jou oom Jakob se nageslag vermoor het, sal jy self uitgemoor word. Die dag toe daar mense van ’n ander plek gekom en Jerusalem verwoes het, het jy met gevoude arms gestaan en kyk sonder om ’n vinger te verroer. Toe vreemdelinge deur die hekke van Jerusalem marsjeer en lootjies getrek het oor die goed wat hulle uit die stad gevat het, was jy aan hulle kant. Jy moes nie staan en lekkerkry het die dag toe die teëspoed jou broersvolk getref het nie. Dit was nie nodig dat jy gewys het hoe bly jy is die dag toe hulle die mense van Juda doodgemaak het nie. Dit was nie reg dat jy alles oor hulle te sê gehad het die dag toe hulle benoud geraak het nie. Dit was nie reg dat jy ook in Jerusalem moes ingaan op die dag toe die ramp hom getref het nie. Jy moes nie so ingenome toegekyk het toe die ongeluk hom tref nie. Jy moes nie ook sy goed gaan staan en steel het toe die onheil oor hom gekom het nie. Jy moes nie by die plek gaan staan het waar die paaie kruis om dié dood te maak wat uit die stad uit weggekom het nie. Dit was verkeerd van jou om dié wat die aanval oorleef het aan die vyand uit te lewer. Die dag waarop die Here met al die nasies sal afreken, is baie naby. Presies net soos jy met ander gemaak het, Edom, sal daar met jou gemaak word. Jy sal presies net so behandel word. Soos julle by my tempel drank gedrink het, sal al die nasies my oordeel moet drink. Hulle sal alles moet opdrink tot daar niks meer van hulle oorbly nie. My tempel op die berg Sion sal ’n plek word waarheen die mense vlug. Dit sal die plek wees wat vir My eenkant gesit is. Die nageslag van Jakob sal daar kom kry wat aan hulle behoort. Die Here sê: Jakob se nageslag sal soos vuur wees en die huis van Josef soos ’n vlam wat brand. Esau se nageslag sal soos ’n stuk droë gras wees. Hulle sal hom verteer en hom wegbrand totdat daar van Edom nie ’n stukkie oor is nie. Die Here het so gesê. Dié wat in Negev in die suide bly, sal die berge van Edom vir hulle vat. Dié wat in die kusvlakte teen die see bly, sal die land van die Filistyne oorneem. Ander sal die lande Efraim en Samaria vir hulle vat. Benjamin sal Gilead inpalm. Die Israeliete wat uit hulle land weggevat is, sal terugkom en alles tot bo by Sarfat van Kanaän terugvat. Dié wat in Jerusalem gebly het en van daar af weggevat is na Sarefat, sal weer in die dorpe van Juda kom bly. Dié wat Jerusalem bevry het, sal by die tempel op Sion bymekaarkom om oor Edom te besluit. En die Here sal oor hulle regeer. Die Here het vir Jona, die seun van Amittai, geroep om sy boodskap te gaan oordra. Hy het vir hom gesê: “Gaan sê vir die groot stad Nineve dat Ek hulle gaan straf. Hulle sonde is so groot dat dit al aan die hemel raak.” Jona het die Here se opdrag probeer ontduik. Hy het weg van Nineve af in die teenoorgestelde rigting na Tarsis toe gevlug. Hy het afgegaan na die hawe in Joppe. Daar het hy ’n skip gehaal wat na Tarsis toe sou vaar. Hy het die reisgeld betaal en op die skip geklim om saam met hulle soontoe te vaar. Hy het van die Here af probeer wegkom. Maar die Here self het ’n baie sterk wind oor die see laat opsteek. ’n Yslike storm het op die see losgebars. Dit het gelyk of die skip uitmekaar gaan breek. Die matrose het bang geword en gedink dat die skip gaan sink. Elkeen het sy god gesoebat dat hy hulle nie sal laat doodgaan nie. Hulle het selfs van die vrag op die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Jona het onder in die skip gelê en slaap. Die skip se kaptein gaan toe na hom toe en vra vir hom: “Hoe kan jy in hierdie storm lê en slaap? Staan dadelik op. Bid ook tot jou god. Miskien sal daardie god hom aan ons steur en keer dat ons vergaan.” Die matrose het toe onder mekaar besluit om lootjies te trek. So sou hulle kon agterkom wie die oorsaak van die groot storm was. Hulle het lootjies getrek. Jona se naam is getrek. Hulle het hom toe begin uitvra: “Sê vir ons, wat het jy dan gedoen dat hierdie storm oor ons losgebars het? Wat doen jy vir ’n lewe? Van watter land af kom jy? Aan watter volk behoort jy?” Hy sê toe vir hulle: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel. Dit is Hy wat die see en die land gemaak het.” Die matrose het verskriklik bang geword. Hulle het geweet dat hy van die Here af probeer wegkom het. Jona het vir hulle vertel dat die Here hom na Nineve toe gestuur het en dat hy nie wou gaan nie. Hulle het vir hom gevra: “Hoe op aarde kan jy so iets doen?” Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?” “Julle moet my in die see gooi,” sê Jona, “dan sal die see weer kalm word. Ek besef nou dat ek die oorsaak is dat julle in hierdie storm beland het.” Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar. Dit het die matrose baie groot respek vir die Here gegee. Hulle het net daar ’n offer vir Hom gebring en belowe dat hulle Hom voortaan sal aanbid. Die Here het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk. Jona was drie dae lank binne-in die vis. Daar binne-in die vis het Jona tot die Here, sy God, gebid: “Toe ek in die nood was, het ek na die Here geroep. Hy het gehoor ek roep na Hom. Van daaronder waar die dooies bly, het ek na Hom geroep om my te help. Hy het dit gehoor. U het my in die diepte van die see laat gooi, ek het gesink tot onder op die bodem van die see. Daar was waterstrome reg rondom my, een brander na die ander het oor my gebreek. Ek het gedink ek is van U afgesny, ek sal nooit weer by u tempel kan kom nie. Reg rondom my was daar water, die water het my vasgevang, seegras het om my kop vasgedraai. Ek het gesink tot waar die fondamente van die berge is, ek het afgesak tot waar die hekke vir altyd agter jou toegaan wanneer jy in die plek van die dooies ingaan. Maar U het my van daaronder opgetrek terug na die lewe toe, Here my God. Toe ek heeltemal uitgeput was, het ek aan die Here gedink, my gebed het opgestyg tot waar U in u blyplek is. Dié wat aan nuttelose afgode vashou, laat die Here los wat vir hulle so lief is. Ek sal met ’n danklied op my lippe vir U offers bring; wat ek vir U beloof het, sal ek met graagte vir U gee. Dit is net die Here wat ons kan red.” Die Here het toe met die vis gepraat. Hy het Jona op die land gaan uitspoeg. Die Here het weer ’n keer vir Jona geroep. Hy het weer vir Jona gesê: “Gaan gee my boodskap vir die groot stad Nineve. Sê vir hulle van my besluit waaroor Ek en jy laas keer gepraat het.” Hierdie keer het Jona geluister. Hy het na Nineve toe gegaan. Nineve was ’n geweldige groot stad. Dit het drie dae gevat om van een kant tot die ander kant deur die stad te loop. Toe Jona ’n dag ver in die stad in was, het hy die Here se boodskap vir hulle gegee. Hy het vir hulle gesê wat die Here besluit het. Hy het gesê: “Daar is nog 40 dae oor voordat die Here Nineve gaan verwoes!” Die inwoners van Nineve het hierdie boodskap geglo. Hulle het besluit dat almal hulle voor God moet verootmoedig en niks moet eet nie. Van die belangrikste mense tot die eenvoudigstes het begrafnisklere aangetrek om vir God te wys hoe spyt hulle was oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. Toe die koning van Nineve van God se besluit hoor, het hy van sy troon afgeklim. Hy het sy koningsklere uitgetrek en ook begrafnisklere aangetrek. Hy het by die ashoop gaan sit. Hy het as oor homself gestrooi om te wys hoe jammer hy was oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het ’n amptelike afkondiging in Nineve laat maak: “Op las van die koning en sy kabinet: Geen mens of bees of vee in Nineve mag enigiets eet of drink nie. Al die mense en elke dier moet klere aanhê vir ’n begrafnis. Elkeen moet baie ernstig tot die Here bid. Almal moet die verkeerde dinge wat hulle doen, laat staan. Die geweld teenoor mekaar moet dadelik stopgesit word. Wie weet of God nie miskien weer ’n keer oor sy besluit sal dink nie. Miskien sal Hy ons jammer kry en ophou om vir ons kwaad te wees. Miskien sal Hy nie ons stad verwoes nie.” God het gesien wat hulle doen. Hy het gesien hoe hulle probeer ophou met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het spyt gekry oor sy besluit. Hy het van plan verander en die stad toe nie verwoes nie. Jona was baie ontevrede omdat die Here van plan verander het. Hy het baie kwaad geword vir die Here. Hy het toe só vir die Here gesê: “Ag genade tog, Here, is dit nie presies wat ek vir myself gesê het toe ek nog by die huis was nie? Is dit nie hoekom ek aan die begin maar liewer na Tarsis toe wou vlug nie? Ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met hulle en gee vir hulle om. U kry altyd later spyt as U besluit het om hulle te verwoes. Laat my tog nou maar liewer doodgaan, Here. Dit is beter as ek nie verder bly lewe nie.” Die Here vra hom toe: “Het jy die reg om vir my kwaad te word?” Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad vir hom ’n skerm gaan maak sodat hy daaronder in die skaduwee kon sit. Hy het daar gaan sit om te kyk of daar iets met die stad gaan gebeur. Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant. Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan. Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.” God vra toe weer vir Jona: “Het jy die reg om oor hierdie wonderplant kwaad te wees?” “Ja, tot die dood toe,” antwoord Jona die Here. “Nou toe nou,” sê die Here vir hom. “Jy dink jy het die reg om kwaad te wees oor ’n plant waarvoor jy nie ’n oomblik moeite gedoen het om dit te laat groei nie, wat oornag op sy eie opgekom en weer net so verdwyn het. Maar jy wil nie hê Ek moet bekommerd wees oor die groot stad Nineve nie, waarin daar meer as 120 000 mense bly wat nie reg van verkeerd kan onderskei nie en waarin daar so baie diere is. Het Ek nie die reg om My oor hulle te bekommer nie?” Die Here het aan Miga boodskappe gegee wat oor Samaria en Jerusalem gegaan het. Miga was van Moreset afkomstig. Hy het hierdie boodskappe wat die Here vir hom gegee het, gekry in die tyd toe Jotam, Agas en Hiskia onderskeidelik koning in Juda was. Die eerste boodskap klink so: “Luister, asseblief! Alle volke en mense wat op die aarde bly, kyk mooi wat gaan gebeur! Die Here is Koning en Hy maak ’n regsaak teen julle. Meer as dit nog, Hy sal teen julle getuig. Die Here is in sy tempel, maar Hy wil hê julle moet hoor wat Hy te sê het. “Kyk, Hy gaan weg van sy hemelse paleis af en kom aarde toe. Hy loop op die hoë bergtoppe. Almal sal weet Hy het gekom, want die aarde wys dit. Die berge smelt weg en die valleie skeur oop. Dit lyk net soos wanneer ’n mens kerswas in ’n vuur sou smelt. Die was word loperig van die hitte en loop net soos water teen die kante van die berge af. Dit is soos vuurwarm lawa wat afloop. Hoekom gebeur dit? Omdat die hele Israel opstandig is teen die Here en verkeerde dinge doen. Wie moet die blaam dra dat die mense van die noordelike koninkryk opstandig is? Die hoofstad, Samaria, natuurlik! En waar is offerplekke vir afgode in die suidelike koninkryk gebou? Binne-in Jerusalem. “Hoor wat sê die Here hieroor: ‘Ek gaan Samaria soos ’n hoop rommel maak wat in die oop veld lê. Samaria sal nie meer ’n plek wees om in te bly nie, maar ’n plek waar ’n mens eerder ’n wingerd sal aanplant. Die stad gaan heeltemal verwoes word. Ek gaan die klippe waarmee die stad gebou is, teen die rante laat afrol tot onder in die laagtes. Net die kaal fondamente sal oorbly. Ek gaan verder al die beelde wat in die stad is, stukkend slaan. Die mense moes betaal om deel te kon neem aan seremonies waarin die gode vereer is. As betaling moes hulle sekere goed na die afgodstempels gebring het. Ek sal al hierdie goed met vuur verbrand,’ sê die Here. ‘Ek sê weer, Ek gaan al die afgodsbeelde verpletter. Hierdie beelde en al die kosbare goed in die tempel is in die begin gekoop uit die betalings wat prostitute gekry het. Hulle het by die tempels gewerk. Maar daar sal mense wees wat hierdie goed sal steel en op ander plekke sal gebruik om vir prostitute te betaal.’” Miga was omgekrap oor die ongehoorsaamheid van Israel. Hy het gesê: “Dit voel vir my of iemand dood is. Ek wil net aanhou huil. Ek sal julle wys hoe hartseer ek is, ek sal kaalvoet en sonder klere rondloop. Ek sal geluide maak soos ’n jakkals wat tjank, of soos ’n volstruis wat brom. Samaria se toestand is soos iemand wat aan ’n ongeneeslike siekte ly. ’n Vyandelike volk gaan hulle aanval en niemand kan meer iets doen om hulle te help nie. Dieselfde gaan met die mense van Juda gebeur. Die gevaar is baie nader as wat hulle dink, die vyand is nie te ver weg van Jerusalem se hekke nie.” “Moenie vir ons vyand, die Filistyne, in die stad Gat van ons neerlaag vertel nie. Hulle moet glad nie sien ons huil nie. In Bet-Ofra kan die mense maar hulle hartseer wys deur in die stof te rol. Die mense van Safir is verslaan en gevange geneem. Om hulle te verneder moet hulle kaal uit die stad stap. By Saänan is die inwoners te bang om dit te waag om buite die mure van die stad uit te gaan. Hulle kan ook nie verwag dat die mense van Bet-Haesel hulle sal kom help nie, want hulle is te behep met hulle eie hartseer. “Die mense van Marot wag in spanning dat iemand hulle moet kom help. Dit gaan nie gebeur nie. Hulle gaan teleurgestel word. Die vyand wat die Here stuur om sy mense te straf is al amper by die hekke van Jerusalem. Die inwoners van Lakis kan hulle solank maar regmaak vir oorlog. Nie dat hulle moet dink dat hulle enigsins ’n kans het om te wen nie. Lakis was die eerste stad wat die noordelike koninkryk, Israel, se voorbeeld gevolg het om afgode te aanbid. Dit is waar die mense van Jerusalem geleer het om ongehoorsaam aan die Here te wees en afgode te aanbid. Julle kan solank vir die mense van Moreset-Gat ’n afskeidsgeskenk stuur, want dit is verby met hulle. Agsib het die konings van Israel opsetlik verkeerd laat verstaan. Hulle het verwag dat die mense van Agsib hulle sou kom help, maar daar het niks van gekom nie. Die Here sê dat Hy aanvallers sal stuur om die mense van Maresa te kom verslaan. Israel se belangrikste leiers sal na Adullam toe gaan om daar in die grotte weg te kruip. Jerusalem kan solank begin rou soos dit gewoonlik gedoen word wanneer iemand dood is. Hulle moet almal hulle koppe kaal skeer sodat dit soos ’n aasvoël se kaal kop lyk. Dit is soos dood, want die stede wat genoem is, is baie belangrike stede. Dit is erg om te dink dat hulle inwoners na ander lande toe weggevat sal word.” “Die Here beplan iets vreesliks teen die mense wat in die nag lê en planne maak om ander te kul. Hulle staan in die oggend op en begin doen wat hulle uitgedink het. Hulle sit in poste waar hulle mag het, wat dit vir hulle moontlik maak om hulle planne te laat werk. As hulle ’n stuk grond wil hê, vat hulle dit doodeenvoudig. Hulle doen dieselfde met mense se huise. Hulle dink nie twee keer om iemand te bedrieg om sy huis in die hande te kry nie. Nie eens ’n mens se familie- of erfgrond is veilig nie. Omdat hierdie mense so maak, sê die Here: ‘Ek beplan iets waarvan julle niks gaan hou nie. Daar is nie ’n kans dat julle dit sal kan ontduik nie. Dit gaan ’n baie slegte ervaring vir julle wees. Daar sal niks van julle trots oorbly nie. Dan sal mense met julle spot. Hulle sal ’n lied sing wat vertel hoe hopeloos dit met julle gaan. Dit klink so: Dit is verby met ons. Daar is niks van ons oor nie. Hy het ons land van ons af weggevat en vir ander mense gegee. Hy het ons grond verdeel onder mense wat ons verraai het.’ “Wanneer die tyd kom dat die land uitgedeel word, sal daar niemand by daardie vergadering wees wat na julle belange omsien nie.” In reaksie op hierdie boodskap van Miga was daar vals profete wat gesê het: “Moet julle nie steur aan die negatiewe goed wat hy gesê het nie. Die Here gaan ons nie verneder deur hierdie ramp oor ons te bring nie.” Miga het toe gesê: “Sê my ’n bietjie, Israel, behoort julle nie te vra: ‘Is die Here ongeduldig?’ en: ‘Sal Hy regtig so iets doen?’ nie. Julle behoort te weet dat die Here goeie dinge te sê het vir mense wat lewe soos Hy wil hê hulle moet. Maar die Here sê party van julle wil nie hoor wat Hy sê nie. Omdat dit julle houding is, is julle my volk se vyande. Julle gryp sommer ’n mens wat kalm en rustig by julle verbyloop en skeur sy klere van sy lyf af. Julle jaag van die vroue van my volk uit hulle huise uit. Hulle het eintlik daardie huise so mooi na hulle smaak reggemaak. Deur dit te doen steel julle die kinders se reg om eendag te erf wat Ek vir hulle gegee het.” Miga sê toe vir hulle: “Staan op, maak dat julle wegkom! Hier sal julle nie langer in vrede kan bly nie. Omdat julle ontrou aan die Here was, gaan hierdie plek so erg verwoes word dat dit nooit weer reggemaak sal kan word nie. Weet julle, as ’n profeet wat graag leuens vertel en mense bedrieg, vir julle sou sê: ‘Ek sal vir julle vertel van al die voordele wat wyn en bier vir julle bring!’ sal so ’n profeet net die regte soort vir julle wees. Hy pas perfek by julle!’ “Die Here sê: ‘Ek sal die mense van Israel wat hierdie verwoesting vrygespring het, bymekaarmaak. Ek sal hulle bymekaarmaak soos ’n mense skape in ’n kraal saamjaag of soos skape wat saam in die veld wei. Die groot klomp mense wat saam in die land is, sal ’n lawaai opskop. Ek sal hulle help om deur die vyand se verdediging te breek soos om deur ’n hek te breek. Ek, die Here, is julle Koning! Ek sal julle leier wees.’” Miga het gesê: “Luister ’n bietjie hier, leiers van Israel. Behoort julle nie te weet wat reg en verkeerd is nie? By julle kry ’n mens net die teenoorgestelde. Julle haat die dinge wat reg en goed is, maar julle is lief vir die slegte dinge in die lewe. Julle behandel die mense van Juda soos diere wat lewendig afgeslag word. Die vel word afgetrek en die vleis van die bene afgesny. Dan eet julle die vleis, sny die vel af en breek die bene oop. Julle kap hulle in stukke soos ’n mens vleis opsny om in ’n pot te kook. Dit is skokkend wat julle aan die mense van Juda doen. Julle steel die mense van Juda se goed en knou hulle af totdat julle kry wat julle wil hê. Julle vat die dinge weg wat hulle aan die lewe hou en laat hulle as stukkende mense agter. Julle gee nie om wie of wat julle skade aandoen nie, solank julle net kry wat julle wil hê.’ Die Here is nie tevrede met hierdie verkeerde dinge wat julle doen nie. Daarom sal Hy, as julle na Hom roep om julle te help, julle nie antwoord nie. Julle kan maar smeek dat Hy iets spesiaals vir julle moet sê of wys, Hy sal dit nie doen nie.” Dit is wat die Here wil hê Miga vir die profete moet sê. “Die Here sê: ‘Julle lei my mense op ’n dwaalspoor. As hulle vir julle kos gee om te eet, het julle allerhande mooi dinge vir hulle te vertel. Dit is net wat hulle wil hoor. As iemand weier om julle te betaal, dan word julle kwaad en behandel hulle soos julle vyande.’ Die Here sê dit is nag vir julle. ‘Die toekoms lyk maar donker vir julle, want Ek gaan nie vir julle iets besonders wys in ’n droom of vir julle iets oor die toekoms sê nie.’ Dit gaan vir hulle voel of die son vir hulle ondergegaan het en die donkerte hulle vasvang. Dit is hulle einde. Hulle sal nie meer kan doen waarvoor profete bekend is nie. Hulle gaan hulle plek in die samelewing verloor. Hierdie profete wat altyd sê wat in die toekoms gaan gebeur, gaan in die skande kom omdat hulle niks gaan hê om daaroor te sê nie. Omdat hulle skaam is, sal hulle almal hulle gesigte met hulle hande toehou, want die Here wil nie met hulle praat nie.” Tog sê Miga: “Ek voel dat die Here se Gees in my lewe is. Hy gee my baie krag. Ek het ook ’n goeie gevoel vir wat reg en verkeerd is. Verder is ek nie bang om vir die mense van Juda en Israel te sê wat hulle verkeerd doen nie en waarvan die Here nie hou nie. “Hoor hier, julle leiers van Israel! Julle is mos die mense wat regverdigheid nie kan verdra nie. Julle lieg en bedrieg almal. Jerusalem lyk baie mooi en dit lyk of dit baie goed gaan, maar dit is ’n vals prentjie. Die waarheid is dat mense vermoor en bedrieg is om dit reg te kry. Jou leiers word maklik omgekoop. Vir geld sorg hulle dat dit met die een mens goed gaan terwyl hulle ’n ander een skade aandoen as hy nie kan betaal nie. Julle priesters leer ook net mense as hulle kan betaal. Die profete vra geld om vir iemand te sê wat die Here sê. Tog sê almal van hulle dat hulle van die Here afhanklik is. Hulle sê: ‘So lank as wat die Here by ons in sy tempel is, sal niks vir ons verkeerd loop nie.’ Hoor hier, julle leiers, dit is julle skuld dat Jerusalem verwoes gaan word. Sion gaan soos ’n omgeploegde land lyk. Die afgebreekte mure van Jerusalem gaan soos ’n hoop bourommel lyk. Bossies gaan oral op die berg groei waar die tempel staan, want daar gaan nie mense na die tempel toe kom wat die bossies gaan plattrap nie.” Miga het gesê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die tempel in Jerusalem die belangrikste plek op aarde sal wees. Mense van verskillende lande en volke sal na die tempel toe kom om die Here te kom dien. “Hulle sal sê: ‘Kom ons gaan na die tempel toe in Jerusalem, want Israel se God is daar. Ons wil graag by Hom leer hoe ons behoort te lewe. Jerusalem is ’n belangrike plek, want dit is waar ons sal kan uitvind of die Here iets spesiaals vir ons tyd wil sê.’ Al is daar nasies wat ver van Jerusalem af bly, dit maak nie saak nie. Die Here sal die probleme tussen hulle oplos. Hy sal hulle so ver kry om liewer van hulle wapens landbougereedskap te maak. Die verskillende nasies sal nie meer teen mekaar baklei nie en nie eens meer leer om oorlog te maak nie. Daar sal vrede onder die mense wees. Hulle sal hulle eie grond hê vir hulle vrugtebome en hulle sal rustig in die koelte van die bome kan sit sonder dat hulle bang is. Hierdie woorde kan julle maar glo, want dit kom van die Here af. Daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie.” Die opponente het geantwoord: “Hierdie nasies moet lewe soos hulle gode van hulle verwag. Ons sal aan die Here, wat ons God is, gehoorsaam wees.” Miga antwoord hulle toe: “Die Here sê: ‘Wanneer hierdie tyd kom wat Ek gesê het, sal Ek die mense wat seergekry het toe Ek my volk gestraf het, bymekaarmaak. Ek sal hulle in die ander lande gaan haal waar Ek hulle as vreemdelinge laat swaarkry het. Hierdie mense wat die swaar straf oorleef het, sal Ek weer ’n trotse nasie maak. Ek sal tot in die verre toekoms hulle Koning in Jerusalem wees.’” “Jerusalem is ’n sterk en veilige stad. Dit is op ’n hoogte gebou sodat die mense van Juda daar veilig kan wees. Jerusalem sal weer soos vroeër die hoofstad wees van waar die koning sal regeer. Hoekom skreeu die mense van Jerusalem dan so benoud? Dit is tog onnodig, want die koning regeer mos nog in die stad. Hulle gekreun en gekla is ook onnodig, hulle planmakers is mos nie dood nie!” antwoord die opponente toe. “Nee,” sê Miga toe, “die mense van Jerusalem behoort benoud te wees. Hulle kan maar gerus skreeu, want moeilike tye lê vir hulle voor. Jerusalem is nie so veilig as wat hulle dink nie. Dit is beter om uit die stad uit te vlug na die oop ruimtes om die stad of selfs om na Babel toe te gaan. Dit is nou wel die hoofstad van die vyand, maar die Here sal hulle daar kom verlos uit die mag van hulle vyande.” Die opponente het gesê: “Dit is nou wel so dat van die nasies hulle kragte saamspan teen Juda en sê: ‘Ons sal met ons eie oë sien hoe hierdie stad ondergaan. En ons sal bly wees!’ Maar hulle verstaan nie hoe die Here dink of wat sy planne is nie. Hy is van plan om vir hulle die lewe baie moeilik te maak en hulle swaar te straf. Die mense van Juda glo dat die Here hulle baie sterk sal maak om teen die nasies te kan veg en hulle te vernietig. Dan sal hulle die kosbare besittings van die vyand vat en dit na Jerusalem bring as die Here se buit. Hy is mos die Koning van die hele wêreld.” Maar Miga het vir die mense van Jerusalem gesê dat hulle moet regmaak vir ’n baie moeilike tyd wat voorlê. Dit sal moeilik gaan, want die stad is deur die vyand omsingel. Die vyand sal die koning van Israel verneder deur te wys dat hy nie meer in beheer van sy mense is nie. “Betlehem is in die Efrata-gebied. Dit is eintlik maar ’n onbelangrike stadjie in vergelyking met van die ander stede in Juda. Maar die Here sê in hierdie stadjie sal ’n leier gebore word wat Hy gekies het om koning oor Israel te wees. Hy kom uit ’n familielyn wat tot baie ver in die verlede teruggaan. Vir ’n tyd lank sal die Here sy mense baie swaar laat kry. Dit sal so aanhou totdat hierdie nuwe leier gebore word. Dan sal van die mense van Juda wat deur hulle vyand uit hulle land weggevat is, terugkom sodat hulle weer by hulle eie mense in Israel kan wees. Hierdie leier sal sy pligte begin en sy mense lei deur die krag wat die Here vir hom sal gee. Die Here sal vir hom die gesag gee wat hy nodig het om die leier van Juda te wees. Die mense van Israel sal met hom as leier baie veilig voel, want oral oor die wêreld sal mense vir hom respek hê. Hy sal sorg dat daar vrede is,” het Miga gesê. Die opponente antwoord toe: “Die mense hoef nie bekommerd te wees nie. As die Assiriërs ons land inval en deur ons verdedigingslinies breek, sal ons genoeg leiers aan ons kant hê om hulle aan te vat. Hulle sal ons beskerm. Hulle sal Assirië met militêre mag verslaan. As die Assiriërs oor ons grense kom om ons land in te val, sal ons bondgenote ons uit hulle mag kom red.” “Nee,” antwoord Miga toe, “die waarheid is net mooi andersom. Die mense van Israel wat die straf van die Here oorleef het, sal vir ander nasies baie beteken. Hulle sal soos dou of reën wees wat die Here verniet gee. Hulle is van die Here afhanklik om te lewe.” “Die mense van Israel wat oorgebly het, sal onder die nasies wees soos ’n leeu onder wilde diere is. Mense sal vir hulle bang wees omdat hulle sterk is. Hulle sal soos ’n leeu wees onder ’n trop skape wat hulle verjaag en verskeur. Niemand sal kom om hulle te help nie. Die mense van Israel sal hulle vyande onverwags aanval en oorwin. Niks sal van hulle oorbly nie,” het die opponente gesê. En Miga antwoord toe: “Die Here sê: ‘Wanneer die tyd kom waarvan Ek praat, sal die volgende gebeur: Ek sal julle wapens en militêre mag heeltemal vernietig. Daar sal ook niks van al julle stede oorbly nie, selfs nie dié met die groot hekke en sterk mure om nie. Ek sal ook ontslae raak van al julle toorkunsies en van julle waarsêers. Verder sal Ek ook al julle afgodsbeelde en die klippilare vernietig wat julle opgesit het om eer aan die gode te bring. Julle sal nooit weer neerbuig voor die goed wat julle met julle hande gemaak het nie. Ek sal die houtpale uitruk wat julle geplant het om die godin van vrugbaarheid te vereer. Ek sal ook julle stede verwoes waar julle hierdie gode aanbid het. Omdat Ek baie kwaad is, sal Ek wraak neem op al die nasies wat aan My ongehoorsaam is.’” “Hoor hier wat sê die Here: ‘Staan op en begin om jou saak te stel. Die berge en die heuwels sal as getuies in die saak luister na wat jy te sê het.’ Berge, julle wat die vaste fondament van die aarde is, luister na die aanklag van die Here teen sy volk. Hy maak ’n saak teen Israel. Die Here vra vir Israel: ‘My volk, wat meen julle het Ek aan julle gedoen wat nie reg is nie? Waarmee het Ek julle opgesaal dat julle so moedeloos is? Antwoord My! Ek het julle gehelp om uit Egipte pad te gee en vry mense te wees. Ek het daarvoor gesorg dat julle nie langer slawe in Egipte is nie. Ek het Moses, Aäron en Mirjam julle leiers gemaak. Onthou julle nie wat koning Balak van Moab teen julle beplan het nie? Hy wou hê Bileam moes julle vervloek, maar in plaas daarvan het hy julle net goeie dinge toegewens. En verder, onthou julle nie wat alles gebeur het vandat julle van Sittim af getrek het totdat julle uiteindelik by Gilgal aangekom het nie? Dit is belangrik dat julle dit sal onthou, want dit sal julle daaraan herinner dat Ek lojaal aan julle is.’ “Julle vra: ‘As ’n mens nou na die offerplek toe gaan om die Here as God te vereer, wat moet ons saamvat? Sal ’n jaaroud kalf die regte offer wees om die verkeerde dinge wat ons gedoen het, reg te maak? Of sal duisende ramme of tien duisende riviere olyfolie die Here tevrede stel? Of beter nog, moet ’n mens jou oudste kind offer om te vergoed vir alles wat jy verkeerd gedoen het?’ “Hoekom al die vrae? Die Here het mos al vir julle gesê wat die regte dinge is om te doen. Hy het ’n ooreenkoms met Israel aangegaan dat Hy en hulle aan mekaar getrou sal wees. Daarom verwag Hy van mense wat hierdie ooreenkoms nakom om te doen wat reg is. Verder ook om aan Hom lojaal te wees en Hom lief te hê. Laastens moet hulle nie hoogmoedig teenoor die Here wees nie. “Die Here se raad aan die mense van Jerusalem is: ’n mens wat verstandig is, respekteer die Here. Almal wat in die stad bymekaar is, kan gerus maar hoor wat die Here te sê het: ‘Dink julle een oomblik dat Ek my oë kan sluit vir die verkeerde dinge waarmee julle besig is? Julle word op skelm maniere ryk. Ek kan dit nie verdra dat die maatbakke en bekers wat julle gebruik om iets soos koring of wyn af te meet, vals is nie. Dink julle Ek sal dink dit is reg as iemand ander mense bedrieg met ’n skaal wat verkeerd weeg? Die ryk mense in die stad kry wat hulle wil hê deur hardhandig met mense te werk. Jerusalem is vol mense wat lieg en bedrieg. Al hierdie verkeerde dinge wat julle doen, is die rede waarom Ek julle begin straf het. Daar gaan nie veel van julle oorbly nie omdat julle verkeerd leef. Niks wat julle doen, gaan goed vir julle werk nie. Julle kan maar eet, maar julle honger sal nie oorgaan nie. Wat julle gaan ervaar, is net soos wanneer ’n vrou geboortepyne kry, maar die kind word nie gebore nie. As ’n kind miskien tog gebore word, sal hy in ’n oorlog doodgaan. Julle kan maar saad probeer saai, julle sal niks oes nie. Probeer maar olywe pars, julle sal nie eens genoeg olie kry om aan julle te smeer nie. Julle sal druiwe pars, maar dit sal nie sap gee om wyn van te maak nie. Al julle harde werk is verniet. Ek het ’n groot probleem met julle omdat julle dieselfde verkeerde goed doen as wat koning Omri en sy seun Agab gedoen het. Dit is die rede hoekom Ek julle stad gaan verwoes. Ja, Ek gaan julle wat in die stad agterbly, verneder. Mense van ander volke sal na julle kyk en vir julle lag, want hulle dink minder as niks van julle.’” “Dit gaan nie goed met my nie. Ek voel soos iemand in ’n vrugteboord nadat die oes alreeds bymekaargemaak is. Daar het nie eens vir my ’n trossie druiwe of ’n enkele vy oorgebly om my honger weg te vat nie. So gaan dit in die land ook. Daar is nie meer mense wat in die Here glo nie. ’n Mens kry ook nie meer eerlike mense nie. Om die waarheid te sê, hulle bedrieg en vermoor hulle eie mense soos niks. Hulle is goed geskool in die kuns om verkeerde dinge te doen. Die ministers en die regters verwag omkoopgeld vir gunsies. Hulle is kop in een mus met mense in belangrike posisies wat maar net kan sê wat hulle graag wil hê en dan gebeur dit so. “Die bestes onder hierdie klomp bedrieërs is erger as ’n gifplant of selfs ’n bos met gevaarlike dorings. ’n Mens kan hulle doodeenvoudig nie vertrou nie. Maar dít moet hulle weet, die dag wanneer die Here hulle gaan begin straf, is baie naby. Chaos gaan dan losbreek. “Moet niemand vertrou nie, nie eens jou man of jou vrou of selfs jou beste vriend nie. Tel jou woorde! Dit sal sleg gaan tussen die ouers, kinders en skoonouers. Die seuns dink hulle pa is dom. Die meisies en skoondogters is opstandig teen hulle ma en skoonma. Jy hoef nie eens ver te soek vir jou vyand nie, hy is sommer in jou huis. “Ek het besluit ek sal my hulp by die Here soek. Ek sal geduldig wag tot Hy besluit dis nou die tyd om my te red. Verder weet ek die Here sal my gebed beantwoord.” Miga het namens Israel gepraat en gesê: “Ons vyande kry verniet so lekker omdat ons swaarkry. Dit is so dat ons geval het, maar ons sal weer opstaan. Dit voel vir ons of ons in die donkerte sit, maar ons weet die Here sal vir ons soos ’n lig wees. Ons het verkeerde dinge gedoen en die Here het nie daarvan gehou nie. Ons moet daarom doodgewoon ons straf vat. Maar as dit eers verby is, sal die Here sorg dat dinge weer vir ons reg loop. Dit sal vir ons voel of Hy ons uit die donkerte bring na die lig toe. Ons sal weet dit is die Here wat ons laat wen teen ons vyande. Ons vyande het gespot en gesê: ‘Waar is die Here julle God heen, is Hy weg?’ As ons vyande sien hoe die Here ons laat wen, sal hulle baie skaam kry oor hulle astrante houding. Ons sal lekker kry as hulle verneder word. Hulle sal soos modder wees wat in die strate lê en waarop mense trap. “Daar gaan ’n tyd vir Israel kom om hulle stede weer reg te maak nadat die vyande dit verniel het. Hulle gaan dan ook hulle grense uitskuif en so meer grond kry. Wanneer hierdie tyd aanbreek wat Israel verwag, sal mense van oral na hulle toe kom. Hulle sal van Assirië, Egipte en die gebied by die Eufraat af kom. Verder sal hulle ook van die verste see en die verste berge af kom. Die lande van die vyande sal wild en leeg word. Mense sal nie daar wil bly nie. Hoekom gebeur dit? Omdat die mense wat daar bly, slegte dinge gedoen het.” “Israel vra die Here om hulle te versorg en te beskerm soos ’n herder met sy skape maak. Hulle bly nou baie eenkant en alleen soos mense in ’n bos. Rondom hulle is die grond baie vrugbaar. Hulle wens dat die Here hulle sal toelaat om weer hierdie grond te gebruik waar alles so goed groei en groen is. Jare terug het hulle dit gedoen. Hulle vra dat die Here hulle weer op sulke wonderlike maniere sal help soos Hy in Egipte vir hulle gedoen het. Toe het Hy gesorg dat hulle nie langer slawe sou wees nie. Die volke van die wêreld sal stom van verbasing wees oor wat die Here vir sy mense doen. Hulle sal skaam wees omdat hulle eie krag skielik na niks lyk nie as hulle kyk na wat die Here doen. Hulle sal hulle monde en ore toedruk van skok. Hulle sal dan weet dat hulle nie veel werd is nie. Hulle sal wees soos slange wat laag op die grond seil. Hulle sal bang en bewerig uit hulle lêplekke kom omdat hulle weet die Here is daar. “Daar is nie nog ’n God soos die Here nie. Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap. Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi. Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie. Lank terug in die verlede het die Here aan Abraham en sy nageslag beloof dat Hy altyd vir hulle sal sorg. Hulle sal ook altyd weet dat Hy vir hulle lief is.” Die Here se straf oor Nineve. Nahum kom van die dorp Elkos af. Wat nou volg, is wat die Here wou hê hy vir Juda moes sê. Die Here hou niks daarvan dat mense ander gode aanbid nie. Dit maak Hom baie kwaad. Daarom straf Hy mense wat teen Hom in opstand kom. Hy wreek Hom ook op sy teëstanders deur hulle te straf. Die Here word nie gou kwaad nie, maar dit beteken nie dat sy mag nie groot is nie. Hy laat nie mense wat verkeerde dinge doen, wegkom nie. Nee, Hy straf hulle. Hy gebruik winde wat warrel en storms wat kwaai woed om te wys dat Hy baie mag het. Dit wys die Here is daar. Die wolke wat saamdrom, lyk dan soos stof wat sy voete opskop. Hy wys ook sy mag deur net ’n opdrag te gee en die see en die riviere droog op. Hy laat ook die groen weiding op groot berge droog word en op ander berge weer laat Hy die bloeisels verwelk. As die berge begin bewe en die heuwels wegsmelt, weet ’n mens duidelik die Here bestaan. Dit is soos ’n aardbewing wat die aarde en sy mense skud. ’n Mens kan vra of enigiemand sal kan oorleef as Hy kwaad is. Dit is nie speletjies as Hy kwaad is nie. Sy woede is so erg, dit is soos ’n vuur wat rotse laat bars en in stukke breek. Die Here is goed. As swaar tye kom, is ’n mens veilig by Hom. Hy sorg vir mense wat wys dat hulle Hom vertrou. Maar as mense teen die Here in opstand kom, sal Hy hulle vir altyd laat verdwyn. Dit sal wees asof ’n vloed water hulle weggespoel het en hulle in die donkerte verdwyn. Watse planne is julle besig om teen die Here te maak? Daar sal niks van kom nie, want Hy sal dit dadelik dooddruk. Daar is nie eers ’n moontlikheid vir die vyand om ’n tweede keer in opstand te kom nie. Die vyand is soos ’n groen bos met baie digte dorings. Dit laat ’n mens dink dat jy nie aan hom kan raak of deur hom kan kom nie. Maar al is dit so, sal die Here hulle soos droë strooi verbrand. Dit is die slegte koning van Nineve wat bose planne teen die Here uitdink. Maar hoor wat sê die Here: “Die Assiriërs is baie sterk en hulle het die beste wapens. Hulle is ook baie mense. Maar al is dit so, hulle sal vernietig word en soos mis voor die son verdwyn. Vroeër het Ek my volk verneder deur hulle aan die lot van hulle vyande oor te laat, maar Ek sal dit nie weer doen nie. Ek sal sorg dat die Assiriërs nie langer oor julle baasspeel nie. Ek sal die houvas wat hulle op julle het, verbreek.” Die Here het ook die volgende oor Assirië te sê: “Jy sal nie kinders hê wat jou naam sal laat voortleef nie. Verder sal Ek ook die beelde van julle gode wat in julle tempels is, vernietig. Dit is nou die beelde wat met die hand gekerf is en ook dié wat met ’n vorm gegiet is. Ek het ook klaar reggemaak vir julle begrafnis, want julle is niks werd nie.” Kyk, ’n boodskapper wat die goeie nuus bring dat ons nou vry is, is reeds op pad hierheen. Hy laat nie eens berge in sy pad staan om die goeie nuus te kom oordra nie: “Mense van Juda, die tyd het nou gekom dat julle weer julle feeste kan vier en julle beloftes kan nakom! Julle bose vyande uit Nineve sal julle land nie weer inval nie, want hulle is heeltemal verslaan.” Nineve, ’n vyand is besig om teen jou op te trek en gaan jou aanval. Sorg dat jou soldate op hulle pos is. Laat van hulle ook die paaie dophou. Wees reg vir die geveg. Laat al jou soldate saamwerk. Toe Israel se vyande hulle destyds besteel en hulle wingerde kaal gestroop het, was dit vir hulle ’n groot vernedering. Maar die Here sal sorg dat ander volke hulle weer met respek sal behandel. Nineve se aanvallers is reg om toe te slaan. ’n Mens kan die spiese in hulle hande baie duidelik sien. Hulle skilde is rooi geverf en hulle dra helder rooi uniforms. Die son blink op die metaal van die oorlogswaens. Die waens dreun en blits heen en weer langs die strate af en ry oor die oop ruimtes. Die aanvallers lyk baie selfversekerd. Die Assiriese koning skree bevele uit aan sy offisiere. Hulle storm na die stadsmuur om hulle verdedigingsplanne te laat werk, maar in die gejaag slaan hulle neer. Dit is egter reeds te laat! Die hekke van die stad is oopgebreek aan die kant waar die rivier is. Daar is niks meer wat die paleis beskerm nie. Dit lyk maar sleg vir hulle. Nineve is rot en kaal gesteel en die mense van die stad word weggevat. Die vroue wat gevang is, was so ontsteld dat hulle geluide gemaak het wat klink soos duiwe wat koer. Hulle het op hulle bors geslaan. Soos die inwoners uit Nineve stroom, loop die stad leeg. Die mense steur hulle nie eens aan die kwaai bevele om om te draai nie. Die invallers moedig mekaar aan: “Vat van die goue en silwergoed, want dit lyk nie of daar ’n tekort is aan enige van die skatte wat ons graag wil hê nie.” Alles wat in die stad gesteel kon word, het hulle gesteel. Die stad is leeggedra. Wat ’n gesig van verwoesting! Die inwoners is in ’n toestand van skok: bleek en bewerig. Die vraag wat ’n mens moet vra, is: Wat gaan nou van Nineve word? Vroeër was die koning soos ’n leeu met Nineve as sy lêplek. Daar het hy saam met sy wyfie rondgeloop en die jong leeutjies kos gegee. Hy het nie eers daaraan gedink dat iets of iemand hulle kwaad sou kon aandoen nie. Die koning was heeltemal in beheer van sake. Hy het gemaak net soos ’n leeu sou maak om sy wyfie en sy kleintjies te versorg. Hy het net soos hy lus was van ander volke gevat wat hy wou hê om vir sy wyfie en kleintjies te gee wat hulle nodig het. Die stad en sy huis was vol van die mense wat hy gevang het en die goed wat hy gesteel het. “Neem kennis,” sê die Here wat groot en magtig is, “Ek is jou vyand! Ek verbrand jou oorlogwaens en laat jou dapper soldate op die slagveld doodgaan. Verder vat Ek alles wat jy op jou veldtogte geroof het van jou af weg. Jou mense wat altyd na jou belange by ander volke kyk, sal dit nie meer doen nie.” Daar lê swaarkry vir jou voor, Nineve! Mense dink aan jou as ’n stad waar mense mekaar vermoor en bedrieg asof dit iets is wat sommer elke dag gebeur. Kyk maar net, jy is altyd vol gesteelde goed en jou mense hou net aan om te steel. So lyk dit waar die geveg aan die gang is: Swepe klap! Wiele rammel! ’n Mens hoor perde wat galop en oorlogswaens wat bokspring op die paaie. Verder sien ’n mens perderuiters wat aangejaag kom, swaarde wat blink en spiese wat blits in die son. Daar is baie slagoffers van die geveg. Die dooies lê opgehoop, die lyke is te veel om te tel. Mense val oor al die lyke wat rondlê. Hoekom gebeur dit? ’n Mens hoef nie te ver te soek vir ’n rede hoekom hierdie straf gegee is nie: Nineve het haar dikwels soos ’n los vrou gedra. Sy was ’n baie mooi vrou. Sy het jou maklik betower. Maar sy het dit gebruik om volke te verlei. Sy het hulle geleer om haar gode te aanbid. Só het sy hulle in haar mag gekry. Die Here wat groot en magtig is, sê: Ek is jou vyand, Nineve! ’n Mens verneder iemand as jy sy klere uittrek en hom kaal voor mense laat staan. Ek sal dit ook met jou doen. Ek sal jou in die oë van die wêreld verneder deur jou swak te laat lyk. As jy so ’n mens ook nog verder met mis gooi, maak jy hom nog net meer walglik. Ek sal sorg dat mense oral oor die wêreld hulle vir jou walg en met jou spot. Hulle sal die rug vir jou draai en sê: “Nineve is verwoes, maar wie gee enigsins om?” Dit sal in die toekoms moeilik wees om iemand te kry wat saam met Nineve sal wil werk. Nineve sal nie vriende hê nie. Nineve, hoe kan jy enigsins dink dat jy beter daaraan toe is as Thebe? Die Egiptiese stad Thebe was dan omring met die water van die Nyl. Dit was soos ’n muur wat die stad aan alle kante beskerm het. Verder het hierdie stad sterk en invloedryke volke in die Midde-Ooste as vriende gehad. En tog is Thebe deur ’n vyand ingeval. Hulle het die mense van die stad gevang en hulle na ’n ander land toe weggevat. Nog erger as dit, die invallers het die klein kindertjies op die straathoeke doodgeslaan. Die soldate het ook lootjies getrek oor wie die belangrike mense van Thebe as hulle slawe gaan kry. Hulle het die leiers met kettings vasgebind. Dieselfde gaan met jou gebeur, Nineve! Jy sal so bang wees dat jy jou dronk sal drink in die hoop dat dit jou sal help. Jy sal ook ’n wegkruipplek probeer kry waar jou vyand jou nie sal kry nie. Dit is maklik om ryp vye van ’n vyeboom af te skud en te eet. Net so maklik sal dit vir die vyand wees om Nineve se wegkruipplekke, wat veronderstel was om veilig te wees, in te neem. Jou soldate sal ook nie dapper wees soos eintlik van hulle verwag word nie. Jou landsgrense sal wyd oop wees soos ’n hek wat afgebrand is. Jou vyande sal baie maklik daar kan inkom. Daar sal niks wees wat in hulle pad staan of hulle keer nie. Maak julle reg, die vyand gaan die stad omsingel! Sorg dat daar genoeg water opgegaar is en maak julle verdedigingsplekke nog sterker. Maak stene van klei wat goed gebrei is. Julle moet ook julle stukkende stadsmuur regmaak. Maar eintlik sal dit nie veel help om al hierdie dinge reg te kry nie. Selfs daar waar julle dink julle is veilig, sal julle doodbrand of in die geveg sterf. Soos sprinkane landerye eet dat daar niks oorbly nie, so sal die vyand met julle klaarspeel. Dit sal julle nie eens help dat julle baie mense is nie. Die handelaars wat met julle besigheid doen, is so baie soos die sterre in die hemel, maar dit sal julle nie regtig help nie. Soos sprinkane sak hulle toe en vat wat hulle kan kry. Maar as hulle klaar is, verdwyn hulle en laat niks agter wat vir ander mense goed is nie. Jou offisiere en jou amptenare is mooiweersvriende. Wanneer hulle iets uit ander mense kan kry wat vir hulle goed is, werk hulle so mooi saam. ’n Mens dink nogal jy kan hulle vertrou. Maar hulle is gou om te verdwyn as hulle dink hulle gaan êrens anders iets beters kry. O koning van Assirië, jy kan nie langer op jou leiers vertrou nie, hulle is almal dood. Die situasie is hopeloos, want jou mense is oraloor verstrooi. Hulle het niemand om hulle te lei nie. Jou omstandighede is soos ’n wond wat nie gesond wil word nie. Uiteindelik gaan ’n mens daarvan dood. Dis die einde, niks kan aan jou omstandighede gedoen word nie. Dit is soos dood. Jou wreedheid het nie grense gehad nie. Baie mense het swaar onder jou wreedheid gely. Vir hulle is die nuus van jou ondergang baie goeie nuus. Hulle is verskriklik bly daaroor! Die Here het Habakuk as profeet gebruik. Wat volg, is wat die Here vir hom gesê het. Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie. Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe. Hulle leërs het net een doel en dit is om mense links en regs dood te maak. Hulle ken net een rigting en dit is vorentoe. Hulle het al so baie mense gevang dat hulle te veel is om te tel. Die Babiloniërs het respek vir niks en niemand nie. Hulle dryf die spot met konings en verkleineer regeringsleiers. Hulle laat hulle ook nie afsit deur die hoë veiligheidsmure wat om stede gebou is nie. Hulle hoop doodeenvoudig grond daarteen op en klim dan oor die mure en neem die stad in. Daarna swiep hulle soos die wind voort en verdwyn net. Vir hierdie mense is hulle eie mag hulle god. Hulle glo hulle mag kan nie misluk nie. Here, U was van altyd af daar en sal altyd daar wees. My God, U is volmaak, ’n mens kan nie anders nie as om U te aanbid. Here, by U het ons ook nog altyd veilig gevoel, maar nou het U die Babiloniërs aangestel om te wys dat ons skuldig is. U gebruik hulle om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het. U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef. Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie? Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry. Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos. Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak? Soos ’n wag op sy wagpos sal ek regstaan om te hoor wat die Here vir my te sê het en wat Hy met my klagte gaan maak. So het die Here my geantwoord: Skryf versigtig en duidelik op kleitablette neer wat Ek jou gaan wys sodat enige mens wat dit lees, nie kan wag om dit aan ander mense te vertel nie. Die dinge wat Ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur. Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie. Die vyand is vol van homself, maar sal nie oorleef nie. Maar mense wat die Here met ’n opregte hart dien, sal lewe as hulle aan Hom getrou bly. Maar kyk maar, mense wat baie van hulleself dink, word maklik deur ’n honger na mag verlei. Hulle kry nooit genoeg nie en is nooit tevrede met wat hulle het nie. ’n Mens kry altyd die gevoel dat hulle gulsig is. Hulle hou net altyd aan om ander volke te probeer oorwin en te oorheers. Maar die dag sal kom wanneer hierdie volke wat nou ly, spotliedjies oor die Babiloniërs sal begin sing en hulle belaglik sal maak met spotgedigte. Hulle sal sê: Dit sal nog beroerd met julle gaan, julle diewe! Hoe lank dink julle kan julle nog aanhou om mense te verplig om sogenaamde skuld te betaal sodat julle nog ryker kan word? Dinge sal nog verander, julle sal sien. Baie gou gaan hierdie mense by wie julle skuld invorder in opstand kom. Julle sal van vrees aan die bewe gaan as hulle julle begin aanval en julle in hulle mag beland. Julle het baie nasies besteel, nou sal van die volke wat oorgebly het, julle besteel. Hulle sal wraak neem op julle oor al die mense wat julle vermoor het en oor al die stede en die mense wat onder julle geweld moes ly. Dit sal nog beroerd met julle gaan, Babiloniërs! Julle het op onregverdige maniere winste gemaak en daarmee julle families ryk gemaak. Julle het gedink niemand kan aan julle vat nie. Julle het julle huise op so ’n manier probeer veilig maak dat geen gevaar naby julle sou kon kom nie. Maar al die oneerlike dinge wat julle gedoen het, het julle families in die skande gedompel. Julle het gedink julle sou baie wen deur volke uit te roei, maar eintlik het julle julleself kwaad aangedoen. Die stene waarmee julle huise gebou is, sal klagtes teen julle uitskree en die balke in die dak sal dit eggo. Ellende is julle voorland, Babiloniërs! In julle poging om alles in die hande te kry om julle stede te bou, het julle mense vermoor en allerhande misdade gepleeg. Die Here het mag oor die hele wêreld. Hy sal alles waarvoor volke so hard gewerk het en soveel moeite voor ingesit het, in vlamme laat opgaan. Niks sal daarvan oorbly nie. Oral waar mense in die wêreld is, sal die gevoel hulle oorweldig om te weet dat die Here daar is. Slegte dinge wag vir julle, Babiloniërs! Julle wat in julle woede julle buurvolke se swakhede uitbuit en hulle dan in die openbaar sleg laat lyk. Hulle kan hulleself nie verdedig nie. Maar julle sal self in die skande kom, al verwag julle eintlik dat ander mense julle met respek moet behandel. Kry van julle eie medisyne! Die Here sal julle straf. Hy sal sorg dat in plaas daarvan dat ander mense en volke baie van julle sal dink, hulle niks van julle sal dink nie. Julle het onverantwoordelik met die natuur gewerk. Julle het wild en wakker bome afgekap en wilde diere doodgemaak. Nou is dit julle beurt om misbruik en doodgemaak te word. Dit is julle straf vir die moorde wat julle oral gepleeg het en die rowwe manier waarop julle met mense in stede gewerk het. Dit sal nie help om julle afgodsbeelde te aanbid nie. Gewone, sterflike mense het hulle gemaak. ’n Mens bedrieg jouself as jy in sulke beelde glo. Hulle kan dan nie eens praat nie. Daar wag slegte dinge vir mense wat vir ’n lewelose beeld van hout of klip sê: “Word wakker, kom aan die gang!” ’n Afgodsbeeld kan mos nie vir julle nuwe dinge bekendmaak of goed laat verstaan wat julle vroeër nie verstaan het nie. Nie eens die feit dat die beelde met goud of silwer oorgetrek is, maak dat hulle iets besonders is nie. Hulle bly leweloos! Dit kan julle weet, daar is niemand so besonders soos die Here nie. Hy is by sy volk teenwoordig en daarom moet alle mense op aarde liewer uit respek vir Hom stilbly. Hier is die gebed wat die profeet Habakuk gebid het: Here, ek was verstom toe ek gehoor het van al die dinge wat U gedoen het. Ek bid dat U nou in ons nood weer hierdie buitengewone dinge sal doen. Here, wees genadig, selfs al is U vir ons kwaad. Die Here was al in die verlede by Israel betrokke toe hulle nog deur die woestyn getrek het. Kyk ’n mens na die hemel en die aarde, dan sien jy iets van die groot en heerlike teenwoordigheid van die Here. As ons sy teenwoordigheid sou kon beskryf, sou dit soos helder lig wees wat uitgestraal word en soos weerlig wat blits. Iewers agter die ligglans is sy groot krag weggesteek. Die teenwoordigheid van die Here veroorsaak vir sommige mense die dood. As hy kom, is dit soos ’n aardbewing wat ’n mens beangs maak. Oeroue berge en heuwels bars uitmekaar en verkrummel van die geskud, niks word onaangeraak gelaat nie. Ek kon die uitwerking van die Here se teenwoordigheid ook op van die ander volke sien. Hulle het in angs aan die bewe gegaan. Sommige mense glo dat riviere en die see sterk magte is wat vyande van die Here is. Die Here is kwaad hieroor. Hy sal daarom soos ’n goed gewapende soldaat veg teen hierdie magte wat hulle gesag uitdaag. Hy sal wen! Hy is reg vir sy vyand en sy wapens sal vir seker sorg dat Hy die geveg sal wen. Hy breek die aarde oop vir die riviere om te vloei. Die natuur reageer op sy teenwoordigheid. Berge bewe, swaar reën spoel in sterk strome af en die ondergrondse water dreun en bruis hoog op. Ook die son en die maan lyk dof teen die blitsende en vernietigende teenwoordigheid van die Here. In sy woede trek Hy oor die aarde om die nasies te straf. Die Here se doel was om Juda te verlos en die koning wat Hy oor hulle aangestel het te red. Hy sal die bevelvoerder van die goddelose mense verslaan en sy mag verbreek. Toe die soldate van die vyand op die volk van die Here afgestorm het om hulle uitmekaar te jaag, het die Here die bevelvoerder deur sy eie wapen laat sterf. Hulle het gedink Israel is ’n maklike prooi. Maar Hy sal sy volk verlos. Die Here tref die see met sy perde sodat die magtige waters opbruis, net soos destyds by die Rietsee met die uittog uit Egipte. Toe het Hy sy volk gered. Toe ek hierdie dinge gehoor het, het ek aan die ruk gegaan en my lippe het gebewe omdat ek bang was. ’n Lam gevoel het oor my gekom en my bene het onder my padgegee. Ek het besluit dat ek rustig en stil sal wag vir die dag wanneer die Here se straf gaan kom oor die Babiloniërs wat Juda ingeval het. My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met ’n hart vol blydskap dien. Ek het al ervaar hoe die Here my uit moeilike omstandighede red. Die Here wat as koning regeer, gee vir my die krag wat ek nodig het. Hy maak dit vir my moontlik om probleme sonder moeite te kan hanteer. (’n Nota vir die afrigter van die koor: Snaarinstrumente moet saam met die gebed gespeel word). In die tyd toe Josia koning van Juda was, het die Here vir Sefanja ’n boodskap gegee. Josia se pa se naam was Amon en Sefanja s’n Kusi. Sefanja se voorouers lyk so: Kusi se pa was Gedalja, Gedalja se pa Amarja en op sy beurt was Hiskia weer Amarja se pa. Die Here sê dat Hy alles van die aarde af gaan vee. Hy gaan van die mense en diere ontslae raak, van die voëls en die visse en ook die slegte mense wat ander mense verkeerde dinge laat doen. Hy sê ook dat Hy veral die mense op die aarde gaan uitroei. Eerste aan die beurt is die mense van Juda en Jerusalem. Die Here gaan die mense van Juda en Jerusalem straf. Hy gaan alles uitroei wat nog met die aanbidding van Baäl in Jerusalem te doen het. Hy gaan ook sorg dat niemand meer die priesters wat in Baäl se diens gestaan het, kan onthou nie. Hy gaan ook ontslae raak van die mense in Jerusalem wat op die dak van hulle platdakhuise klim en neerkniel om die son, die maan en die sterre te aanbid. Dan is daar ook nog ander mense in Jerusalem wat voorgee om die Here te aanbid. Hulle beloof om lojaal aan die Here te wees, maar as hulle ’n eed moet aflê, gebruik hulle die afgod Milkom se naam. Al hierdie mense sal Hy uitwis! Dit geld ook die mense wat Hom eens op ’n tyd getrou gedien het, maar dit nie meer doen nie. Hulle wil ook nie meer hê Hy moet hulle lei nie. Hulle vra ook nie meer die Here se raad as hulle dit nodig het nie. Die mense van Juda moet besef dat hulle te make het met die Here wat gesag oor alles en almal het. Die beste wat hulle kan doen, is om hulle mond in sy teenwoordigheid te hou. Die tyd is baie naby dat Hy straf gaan uitdeel. Wanneer Hy kom om straf uit te deel, gaan dit wees soos iemand wat ’n offermaaltyd vir gaste hou en dan word die gaste self die offer. Die Here gaan die mense van Juda straf. Wanneer die tyd aanbreek om met hulle af te reken, gaan die Here die leiers en die prinse van Juda straf. Hy gaan ook die mense straf wat die gewoontes van die heidense volke navolg. Dit is ook nie vir die Here aanvaarbaar dat party van die mense net soos die heidene aanbid nie. Hy gaan hulle straf. Hy gaan ook die mense straf wat die koning ryk maak met die skatte wat hulle gekry het deur mense te beroof en te vermoor. Die Here sê wanneer die tyd aanbreek om mense te begin straf, sal daar by ’n ingang van Jerusalem met die naam Vispoort mense wees wat sal skreeu omdat hulle bang en benoud is. Ook in die nuwer deel van die stad sal van die mense hartseer huil. Uit die heuwels in die omgewing sal ’n plofgeluid gehoor kan word soos die afgodsbeelde stukkend val. Dit sal ook droewig gaan met mense wat in die besigheidsgebied van die stad bly, want die besigheidsmense gaan sterf. Wanneer die Here sy beloofde straf gaan begin uitdeel, sal Hy niemand in Jerusalem laat wegkom nie. Hy sal al die arrogante mense en ook dié wat dink hulle het niemand nodig nie, uitsnuffel en straf. Hulle dink mos dat hulle hulle nie oor die Here hoef te bekommer nie, want hulle sê: “Hy doen tog niks, nie goed of kwaad nie.” Maar hierdie arrogante mense se besittings sal gesteel word en hulle huise vernietig word. Dit sal nie help dat hulle huise bou nie, want hulle sal nie die plesier hê om daarin te bly nie. Dit is ook ’n hopelose saak vir hulle om wingerde aan te plant, want hulle sal nooit die kans kry om van die wyn te drink nie. Dit gaan ’n vreeslike tyd wees wanneer die Here mense begin straf. Dit gaan gouer kom as wat mense dink. Dit gaan ’n baie slegte tyd wees. Selfs mense wat vir hulle dapperheid bekend is, sal van vrees skreeu. Hoe lyk hierdie tyd? Dit is ’n tyd waarin mense sal sien dat die Here kwaad is. Juda se mense gaan baie swaarkry en deur vrees verlam word. ’n Mens kan dit beskryf as ’n tyd waarin dinge verwoes en vernietig sal word, ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. Die mense kruip in hulle stede weg wat ommuur en versterk is om hulle teen hulle vyande te beskerm. Maar wanneer hulle die trompette hoor blaas en die vyandelike soldate hoor skree, sal hulle weet dat dit oorlog is. Hulle sal so bang wees dat hulle heeltemal deurmekaar en onseker sal voel. Dit alles sal gebeur omdat hulle sonde doen. Die Here hou niks daarvan nie. Hy sal hulle laat doodgaan, want Hy dink dat hulle lewe minder werd is as sand of mis. Wanneer die tyd aanbreek dat die Here hulle gaan straf, sal al hulle rykdom hulle niks help nie. Hulle sal hulleself nie uit die moeilikheid kan loskoop nie. Sy woede sal soos ’n vuur wees wat alles verbrand wat voorkom. In een oomblik sal Hy al die mense op aarde uitwis. Die boodskap van die Here aan die mense van Juda is dat hulle bymekaar moet kom en moet bid. Hulle is eintlik ’n nuttelose klomp mense sonder enige skaamte. Julle moet bymekaarkom voordat die Here julle sal straf soos Hy besluit het om te doen. Julle moet dit doen voordat sy woede julle tref en die tyd kom dat Hy julle soos kaf wegwaai omdat Hy kwaad is. Daar is van julle wat nederige mense is en graag doen wat reg is. Die beste ding wat julle kan doen, is om uit te vind wat die Here wil hê julle moet doen. As julle probeer om regverdig op te tree en nederig te bly, sal die Here julle miskien teen sy woede beskerm wanneer die tyd aanbreek dat Hy mense gaan straf. Die Filistynse stede Gasa, Askelon, Asdod en Ekron sal verwoes word en die inwoners uitgejaag word. Slegte dinge lê voor vir die Filistyne wat langs die see in die land Kanaän bly. Die Here het nie goeie dinge oor hulle te sê nie. Hy sê Hy gaan hierdie deel van die land waar die Filistyne bly, vernietig sodat dit onmoontlik vir mense sal wees om daar te bly. Die gedeelte langs die see sal ’n weiplek vir vee wees met hutte vir die veewagters om in te bly en krale vir die vee. Nadat die Here sy straf uitgedeel het, sal hierdie kusgedeelte die eiendom word van die mense van Juda wat sal oorbly. Hulle sal in die vlaktes langs die see bly en in die aand in die leë huise in Askelon slaap. Dit sal gebeur omdat die Here wat hulle God is vir hulle omgee en wil hê dat hulle in goeie omstandighede moet lewe. Die Here sê dat Hy gehoor het hoe die mense van Moab en Ammon, Israel se bure, hulle slegsê en met hulle spot. En dan praat hulle ook nog groot oor hoe hulle Israel se grond gaan afvat. Die Here is Israel se God en alles in die wêreld behoort aan Hom. Hy sê, so waar as wat Hy leef, Hy sal Moab en Ammon verwoes soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. Oral in hierdie gebied sal daar brandnetels en brak kolle wees, ’n woeste en verlate plek waar mense nooit weer sal kan bly nie. Die mense van Juda wat die straf van die Here sal oorleef, sal hierdie volke beroof en hulle grondgebied oorvat. Al hierdie negatiewe dinge sal met Moab en die Ammoniete gebeur omdat hulle so arrogant is en so baie van hulleself dink. Hulle probeer Juda, wat die Here se volk is, belaglik maak. Hulle beledig sy mense. Hierdie mense sal benoud raak as hulle net aan die Here dink, want Hy laat al die gode van die wêreld in die niet verdwyn. Al wat ’n nasie is, in watter land hulle ook al is, sal Hom aanbid. Die Here sal ook die mense van Etiopië doodmaak. Die mense in die noordelike landstreke waar die land Assirië is, sal deeglik besef hoe magtig die Here is. Hy sal hulle hoofstad Nineve soos ’n woestyn maak waar daar nie water is nie en mense nie kan oorleef nie. Die stad sal ’n weiplek vir beeste en skape word en allerhande soorte wilde diere sal dit ’n lêplek maak. Uile sal in stukke van mure wat nog so half bly staan het, sit en hulle kenmerkende geluide maak. Bourommel sal in die deuringange lê en die deurrame van sederhout wat uit die kosyne uitgeruk is, sal daar rondlê. Dit is wat met hierdie stad en sy arrogante mense gaan gebeur. Hulle het gedink hulle is altyd so veilig binne-in die stad. Hulle het altyd gespog dat daar nie nog so ’n stad soos hulle s’n is nie. Maar die stad sal ’n plek word waar mense nie sal kan bly nie. Wilde diere sal dit hulle lêplek maak. As mense daar verbystap, sal hulle stom van verbasing wees. Hulle sal nie glo wat hulle met hulle eie oë sien nie. Slegte tye wag vir Jerusalem. Die mense van die stad is opstandig. Hulle is sleg en misbruik hulle eie mense. Hulle is nie vry mense nie. Hulle luister nie na die Here nie en wil nie reggehelp word as hulle verkeerd doen nie. Hulle vertrou nie die Here nie en dien Hom ook nie. Die amptenare in die stad behandel gewone mense sleg en buit hulle uit. Die regters tree onregverdig op en is gulsig. Hulle kyk net heeltyd wat hulle uit ander mense kan kry en dink net aan hulleself. Die profete tree onverantwoordelik op, ’n mens kan nie glo wat hulle sê nie. Die priesters het nie respek vir die tempel waarheen mense kom om die Here te aanbid nie. Hulle verdraai ook die opdragte van die Here na hulle smaak. Maar ten spyte van al hierdie verkeerde dinge, bly die Here nog in die stad. Hy doen nooit enige verkeerde dinge nie. Elke dag, sonder uitsondering, sorg die Here dat mense weet wat reg is, selfs al steur mense hulle nie daaraan nie. Feit van die saak is, hierdie slegte mense kry mos op geen manier skaam vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Die Here sê dat Hy al die verskillende volke heeltemal uitgewis het. Hy het hulle stede wat hulle sterker gemaak het en waarin hulle wegkruip as gevaar dreig, vernietig. Hierdie stede is nou verlate, daar is nie meer enige mense in die strate te sien nie. Niemand het in hierdie stede oorgebly nie, daar is nie ’n enkele inwoner oor nie. Die Here het gedink dat die mense van Jerusalem Hom nou sou respekteer na hulle alles gesien en gehoor het wat Hy kan doen, en dat hulle Hom voortaan sou gehoorsaam. Dan sou dit nie vir Hom nodig gewees het om die stad weer te straf nie. Maar nee, hulle het met meer energie as ooit tevore aangehou om verkeerde dinge te doen. Dit het die Here nie gelukkig gemaak nie. Die Here het toe vir Jerusalem gesê dat hulle reg moet wees vir wat voorlê. Die tyd van afrekening is om die draai. Hy sê Hy het besluit dat Hy volke en koninkryke iets van sy vreeslike woede gaan laat beleef. Hy kan hierdie volke nie verdra nie. Daarom sal Hy die hele wêreld iets laat ervaar van sy woede wat soos die hitte van ’n vuur alles verskroei. Die Here sê dat wanneer die tyd reg is, Hy die volke se gesindhede sal verander sodat hulle nie langer tot ander gode bid nie, maar Hom almal saam sal aanbid. Met die verloop van tyd het mense verspreid geraak en anderkant die riviere van Etiopië geland. In die tye wat kom, sal hierdie mense wat die Here nog dien, offers aan Hom bring. Die Here sê verder dat sy volk in die tyd wat kom, nie langer skaam sal hoef te kry oor alles wat hulle gedoen het toe hulle opstandig teen Hom was nie. Hy gaan ontslae raak van almal wat hoogmoedig en arrogant is. Daar sal nie langer plek wees vir mense wat te veel van hulleself dink as hulle Hom in die tempel kom aanbid nie. In Israel sal die Here net gewone mense wat nederig is en Hom vertrou, laat oorbly. Hulle sal mense wees wat nie ander kul en kwaad aandoen nie. Hulle sal ook mense wees wat nie leuens vertel en ander bedrieg nie. Hulle sal veilig en rustig lewe en sal vir niemand bang wees nie. Die mense van Israel moet hulle blydskap wys deur te sing en te juig. Elkeen se hart moet oorloop van blydskap en vreugde. Die Here sal hulle nie langer straf nie. Hy jaag ook al hulle vyande weg. Die Here is die koning van Israel en Hy bly by hulle. Hulle hoef daarom vir niks meer bang te wees nie. Die tyd het gekom dat Jerusalem se mense nie langer bang of moedeloos hoef te wees nie, want die Here is by hulle. Die Here is soos ’n held wat hulle kom red en hulle wenners maak. As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ’n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak. Die Here sê dat Hy al die rampe sal wegvat wat vir hulle swaarkry en hartseer gebring het. Binnekort sal Hy al die mense straf wat Israel se vryheid gesteel het. Die Here sal die hulpelose mense en dié wat uitgestoot is uit die samelewing help. Verder sal Hy ook hulle naam in ere herstel sodat hulle nie meer skaam hoef te wees nie. Die wêreld sal met nuwe oë na hulle kyk en hulle respekteer. Wanneer die tyd kom waarvoor hulle wag, sal die Here sy mense van oral af bymekaarmaak en hulle huis toe bring na hulle land toe. Hy sal sorg dat al die volke van die wêreld hulle ag en met respek behandel. Israel sal self beleef hoe hulle omstandighede vir hulle positief verander en hoe dit weer met hulle goed gaan. Die Here het gesê Hy sal sorg dat dit gebeur! Die Here wou ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua stuur en daarvoor het Hy Haggai gebruik. Serubbabel was in hierdie stadium die hoof van Juda en Jesua was die hoëpriester. Serubbabel se pa se naam was Seältiel en Josadak was Jesua se pa. Dit het gebeur op 29 Augustus 520 v.C. in die tweede jaar wat Darius koning was. Niemand het soveel mag as die Here nie. Hy sê dat die mense van Juda die tempel weer moet opbou. Hulle was gevang en uit hulle land uit weggevat na Babel toe. Nou is hulle terug in hulle land. Maar vandat hulle terug is, het hulle nog nie weer daaraan gedink om die Here se tempel te herbou nie. Daarom wil Hy hê dat Haggai ’n paar dinge vir hulle moet sê. Hy wil weet of die mense van Juda reg maak deur in hulle spoghuise te bly terwyl sy huis nog verwoes lê. Die Here sê vir die mense van Juda: “Dink mooi na oor wat op die oomblik aan die gang is. Julle het baie saad op die landerye gesaai, maar die oes wat julle ingebring het, was maar klein. Julle het wel kos om te eet, maar dit laat julle nie juis versadig voel nie. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle tevrede te stel nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie genoeg om julle warm te maak nie. Die geld wat julle vir julle daaglikse werk kry, verdwyn ook so vinnig asof daar ’n gat in julle beursie is.” Die Here sê weer: “Dink mooi na oor wat aan die gang is. Gaan haal hout in die berge en begin om my tempel reg te maak. Ek sal baie bly wees as my huis weer reggemaak is. Dan sal die mense weer daarheen kan gaan en My daar kan dien, sê die Here. Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk. Dit is julle eie skuld dat dit nie reën nie en niks wil groei nie. Dit is Ek wat droogte oor die land gebring het. Dit het ’n effek op die berge, die graanlande, die wingerde, die olyfboorde, die oeste en wat ook al uit die grond groei. Die droogte raak ook mens en dier en alles waarvoor julle gewerk het.” Haggai het gedoen wat die Here gesê het. Hy het met die mense van Juda gepraat en gesê wat die Here wou hê hulle moes hoor. Serubbabel, wat nou die hoof van die land was, die hoëpriester Jesua en al die mense wat in die land was, het positief gereageer op wat die Here hulle God te sê gehad het. Die mense van Juda het weer besluit om die Here met hulle hele hart te dien. Die Here het toe weer vir Haggai gebruik om vir die volk die belofte te gee dat Hy by hulle sal bly. Die Here het vir Serubbabel, Jesua en die mense wat uit Babel teruggekom het, soveel moed en energie gegee dat hulle aan die werk gespring het om die huis van Here reg te maak. Die werk het op 21 September 520 v.C. begin in die tweede jaar wat Darius koning was. Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir Haggai ’n boodskap vir die volk gegee. Hy het gesê: “Vra tog vir Serubbabel, Jesua en die mense wat weer in Juda kom bly het, die volgende vraag: Hoeveel is daar van julle wat die eerste tempel gesien het toe dit nog ’n pragtige gebou was? Hoe lyk die gebou nou vir julle? Totaal en al na niks!” Maar nou sê die Here vir Serubbabel dat hy en Jesua en die hele volk moed moet skep en aan die tempel moet begin werk. Die Here wat alle mag tot sy beskikking het, beloof dat hulle op sy hulp kan staatmaak. Hy sê: “Toe julle uit Egipte gevlug het, het Ek belowe dat my Gees altyd saam met julle sal wees. Daarom moet julle nie nou bang wees nie!” Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner. Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid. Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is. Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!” Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee. Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee. Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?” Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.” Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?” Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.” Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.” “Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie. Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry. Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie. “‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken. Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.” Op die agtiende Desember het die Here nog ’n boodskap vir Haggai gegee. Hy moes vir Serubbabel sê dat die Here die hemel en die aarde deur ’n aardbewing gaan skud. Verder gaan Hy ook koninkryke laat ondergaan en hulle mag van hulle af wegneem. Niks sal van volke se wapentuig en soldate oorbly nie en hulle perderuiters sal mekaar afmaai. Die Here sê wanneer al hierdie dinge gaan gebeur, gaan Hy Serubbabel gebruik. Hy het hom uitgekies om ’n leier te wees en daarom gee Hy aan hom gesag soos wat ’n koning het, want die Here wie se mag sonder perke is, het gesê dit is wat Hy gaan doen. In die agtste maand van die tweede jaar wat Darius koning was (dit is 520 v.C.), het die Here vir Sagaria gevra om vir sy mense ’n paar belangrike dinge te gaan sê. Hy was ’n profeet wat vir die Here gewerk het. Sy pa se naam was Berekja en sy oupa was Iddo. Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Ek is baie kwaad vir julle voorouers! Ek is die Here en Ek het mag oor alles en almal. Ek sê: Kom terug na My toe en dien My weer. Julle kan weer my volk wees. Moenie soos julle voorouers maak nie. My profete het vroeër vir hulle gesê dat hulle moet ophou om so verkeerd te lewe en slegte dinge te doen. Maar hulle het nie geluister nie en op hulle eie manier aangegaan. Julle voorouers en daardie profete is lankal dood. Maar my profete het die waarheid gepraat. Alles wat hulle vir julle voorouers gesê het, het toe net so gebeur.” Hulle het toe besef dat die Here nie leuens vertel nie. Wat Hy besluit het om met hulle te doen het gebeur. Hulle moes saamstem: hulle het gekry wat hulle verdien het. Hulle het die verkeerde dinge gedoen. Op vyftien Februarie, in die tweede jaar wat Darius koning was, wou die Here weer hê dat Sagaria iets vir sy volk moes gaan sê. Sagaria het vertel wat gebeur het: Een nag het ek ’n droom gesien van ’n man wat op ’n bruin perd sit. Hy het tussen bome in ’n kloof gestaan. Agter hom was ook nog ’n rooi perd, ’n bruine en ’n witte. Ek het gevra: Wat is hier aan die gang, Meneer? ’n Man wat soos ’n engel lyk, het vir my gesê: “Ek sal jou sê wat dit beteken.” Die man wat tussen die bome gestaan het, het toe begin verduidelik. “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om te gaan kyk wat in die wêreld aangaan. Die ruiters het toe teruggekom en daar by die bome alles kom vertel. Hulle het gesê: Ons het deur die wêreld gery en alles is stil en rustig.” Die engel van die Here sê toe: “Here, U is die Here van alles en almal! U is nou al vir 70 jaar kwaad vir die mense van Jerusalem en die ander stede van Juda. Hoe lank gaan dit nog vat voordat U weer vir hulle goed gaan wees?” Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom moed ingepraat. En die engel het vir my gesê: “Skree hard sodat almal kan hoor wat die Here sê.” Hy sê: “Ek is baie lief vir Jerusalem en die berg waarop die tempel staan. Al twee is Myne! Maar Ek is sommer baie kwaad vir die nasies wat so tevrede met hulleself is. Ek was kwaad vir my volk, maar nou het die Babiloniërs net te ver gegaan. Hulle het hulle nou te sleg behandel. Daarom sal Ek na Jerusalem toe terugkom om vir die mense te wys dat Ek vir hulle omgee. Ek sal sorg dat my tempel reggemaak word. Hulle sal kom kyk wat nodig is om my tempel weer op te bou. Skree weer sodat almal kan hoor wat die Here gaan doen: Hy sê: Ek sal sorg dat dit sommer baie goed met al die mense in Israel gaan. Daar sal meer as genoeg van alles wees. Ek sal ook kyk dat alles weer vir Jerusalem reg verloop. Ek kies Jerusalem as my gunstelingstad.” Sagaria het verder gesê: Ek het weer ’n droom gehad. Daar was vier horings. Toe vra ek vir die engel wat vroeër met my gepraat het: Wat beteken dit wat ek sien? Hy het vir my gesê: “Die vier horings is soos die sterk nasies wat die mense van Juda, Israel en Jerusalem uitmekaar laat spat het.” Toe laat die Here my ook nog vier ambagsmanne sien. Ek het weer gevra: Wat kom hulle hier doen? Hy het geantwoord: “Die horings is die sterk nasies wat die mense van Juda in alle rigtings laat spat het. Hulle het Juda se mense soos groot gekke laat voel. Die ambagsmanne het gekom om hierdie sterk nasies reg te sien. Hulle sal hulle horings breek en so die nasies swak maak. Die nasies gaan lelik verloor.” Vir ’n derde keer het ek gedroom. Dié keer het ek ’n man met ’n maatband in sy hand gesien. Ek het vir hom gevra: Waarheen is jy op pad? Hy het my geantwoord: “Ek gaan Jerusalem opmeet. Ek wil kyk hoe lank en hoe breed dit is.” Die engel wat vroeër met my gepraat het, het op pad Jerusalem toe ’n ander engel raakgeloop. Hy sê toe vir hom: “Hardloop gou en gaan sê vir die jongman met die maatband: Jerusalem gaan nog uit sy nate bars. Daar gaan so baie mense en diere wees dat hulle buite die stad sal moet bly.” Die Here sê: “Ek sal hulle beskerm. Ek sal vir hulle soos ’n muur van vuur wees wat om hulle gebou is. Binne-in die stad sal hulle weet dat Ek daar is. Hulle sal weet dat Ek groot en sterk is.” Die Here sê: “Maak dat julle wegkom uit die noorde. Ek is daarvoor verantwoordelik dat julle in al vier die windrigtings verstrooi is. Julle wat in Babilonië bly, maak dat julle daar wegkom. Vlug na Jerusalem toe terug!” Die Here het mag oor alles en almal. ’n Mens voel sy magtige teenwoordigheid aan. Hy is die Een wat my met ’n boodskap na die nasies stuur wat julle onderdruk het. Hy sê: “Julle is my oogappel. Van al die dinge wat Ek het, is julle die kosbaarste. Wie aan julle vat, vat aan wat vir My belangrik is. Ek sal self teen hierdie nasies baklei. Hulle slawe sal hulle base word.” Julle sal weet dat die Here my gestuur het wanneer die dinge wat ek gesê het, waar begin word. Die Here sê vir die mense van Jerusalem: “Sing en wees bly, want Ek kom weer onder julle bly.” In dié tyd sal baie van die nasies kant kies vir die Here. Hulle sal dan deel wees van die mense wat aan Hom behoort. Die Here belowe dat Hy in Jerusalem sal bly. Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, sal julle weet dat ek goed nie uit my duim uitsuig nie. Dit is die Here wat my gestuur het. Juda is die land wat die Here vir Hom uitgesoek het. Die grond is sy erfgrond. Hy sal ook weer Jerusalem sy eie blyplek maak. Uit respek vir die Here moet mense tjoepstil wees. Hy gaan iets ongeloofliks doen. Die Here het my weer laat droom. Die droom was van die belangrike priester Jesua wat voor die engel van die Here staan. Regs van Jesua het Satan gestaan, die een wat hom aankla. Hy het vertel wat Jesua verkeerd gedoen het. Die Here het vir die aanklaer gesê: “Ek dink niks van wat jy nou sê nie. Ek het Jerusalem vir My gekies. Ek wil niks van jou weet nie! Jesua is onskuldig, hy is soos ’n stuk hout wat uit die vuur geruk is. Hy slaag die toets!” Jesua het met vuil klere aan voor die engel gestaan. Die engel sê toe vir die ander wat voor hom staan: “Trek sy vuil klere uit!” Daarna het die engel vir Jesua gesê: “Ek vergewe jou vir alles wat jy verkeerd gedoen het. Ek gee vir jou splinternuwe klere om aan te trek.” Toe het ek gesê: “Bind asseblief ook vir hom ’n skoon tulband om sy kop!” Hulle het toe ’n skoon tulband om sy kop gebind. Verder het hulle ook vir hom nuwe klere aangetrek terwyl die engel van die Here staan en kyk het. Daarna het die engel van die Here ernstig met Jesua gepraat en gesê: “Die Here wat oor alles en almal regeer, sê: As jy lewe soos Ek wil hê jy moet en presies doen wat Ek vra, sal jy die baas van die tempel in Jerusalem wees. Jy mag dan ook enige tyd in die deel van die tempel kom waar Ek is. “Hoor hier, Jesua, jy wat die hoëpriester is, en ook al die ander priesters wat by jou is, moet besef: mense sal na julle as leiers kyk en moed skep vir die toekoms. Binnekort gaan Ek iemand laat kom wat vir My sal werk. Hy is soos ’n jong tak van ’n boom; die toekomstige koning van Juda wat uit koning Dawid se familie kom. Ek sit ook ’n klip voor jou neer, Jesua. Hierdie klip sal sewe kante hê net soos ’n diamant wat so geslyp is. Ek gaan die volgende woorde op die klip uitkrap, sê die Here: ‘Op een enkele dag sal Ek al die verkeerde dinge wegvee wat die mense van Israel gedoen het.’ Wanneer dit gebeur, sê die Here, sal almal rus en vrede hê. Hulle sal in vrede saam met hulle bure kuier.” Die engel wat tot nou toe met my gepraat het, het teruggekom en my wakker gemaak asof ek aan die slaap was. Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n kandelaar wat heeltemal van goud gemaak is. Bo-op die kandelaar is ’n bak waarin olie kom. Die kandelaar het sewe lampe met pypies aan om die olie na die lampe te laat loop. Verder was daar ook twee olyfbome, een links en die ander regs van die kandelaar.” Ek vra toe vir die engel wat met my praat: Wat beteken alles wat ek sien? Die engel het my gevra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Toe begin hy vir my verduidelik. Die Here wil vir Serubbabel sê: “Jy sal nie suksesvol wees deur militêre mag te gebruik nie. Dit sal jou ook nie help om op jou eie krag staat te maak nie. Dit is die Gees van die Here wat vir jou sukses sal gee. Dit is wat die Here sê!” Geen probleem of struikelblok sal in sy pad staan nie. Al voel dit soos ’n berg wat in sy pad staan, dit sal gelyk gemaak word soos ’n plat vlakte. Wanneer Serubbabel die laaste steen in die tempel inbou, sal die mense skree: “Mag dit goed gaan, mag dit goed gaan met die tempel!” Daarna het die Here weer met my gepraat en gesê wat ek moet sê: “Serubbabel het die fondamente van hierdie tempel gelê. Hy sal die tempel klaar bou.” Die dag as dit gebeur, sal julle weet dat die Here my gestuur het. Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie. Die mense sal rede hê om bly te wees as hulle sien dat Serubbabel met die bouwerk aangaan. Om weer tot die droom van die kandelaar terug te kom: die engel het verduidelik: “Die sewe lampe is soos die oë van die Here wat die hele wêreld deursoek.” Toe vra ek weer vir die engel: Wat beteken die twee olyfbome wat aan weerskante van die kandelaar staan? Ek het hom ’n tweede keer gevra: Wat beteken die twee olyftakke wat olie laat uitloop deur twee goue pypies? Weet jy nie? het hy gevra. Ek het hom geantwoord: “Nee, Meneer, ek weet nie.” Toe het hy vir my verduidelik: “Die twee olyftakke stel die twee mense voor wat die Here uitgekies het om Hom te help. Hy is die Here van die hele aarde. Om te wys dat Hy hulle gekies het om Hom te help, het Hy olie op hulle kop laat gooi. Hy het hulle met olie laat salf.” Ek het weer ’n droom gehad. Ek het ’n boek gesien wat deur die lug vlieg. Dit was die soort boek wat ’n mens oprol. Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: ’n Boek wat deur die lug vlieg. As ’n mens die boek afrol, is dit nege meter lank en vier en ’n half meter breed. Die engel het vir my gesê: “Die mense van Juda steel en sweer vals. Die Here gaan hierdie verkeerde dinge straf. Lees die boek, die straf daarvoor is in die boek geskryf. Daar staan: Almal wat steel en vals sweer, sal uit die land weggejaag word. Die boek is geskryf sodat al die mense van die wêreld dit kan lees.” Die Here wat oor alles en almal heers, sê sy straf sal elke huis raak waar iemand iets gesteel het. Dit raak ook die huise van die mense wat vals sweer. Hulle praat kastig die waarheid en gebruik die Naam van die Here om hierdie sogenaamde waarheid te bewys. Die Here sal hierdie mense swaar straf: hulle huise sal heeltemal verwoes word. Daar sal niks van die hout en die stene van die huise oorbly nie. Die engel het weer met my kom praat en gesê: “Kyk op! Iets anders is op pad.” Ek vra toe: Wat is dit? Sy antwoord was: “Dit is ’n mandjie wat gebruik word om graan mee af te meet. Dit is vol al die verkeerde goed wat die mense in die land gedoen het.” Die deksel van die mandjie was van lood gemaak. Toe iemand die deksel oplig, sit daar ’n vrou in die mandjie. Die engel het gesê: “As julle na haar kyk, sien julle alles wat sleg is.” Hy het haar in die mandjie teruggestamp en die swaar deksel toegemaak. Toe ek weer opkyk, sien ek twee vroue met vlerke wat aangevlieg kom. Hulle het in die wind gesweef. Hulle vlerke het soos ’n ooievaar s’n gelyk. Hulle het die mandjie opgetel en daarmee weggevlieg die lug in. Ek het vir die engel gevra: Waarheen vat hulle die mandjie? Hy het geantwoord: “Babel toe. Hulle gaan daar ’n tempel vir die mandjie bou. As die bouwerk klaar is, beplan hulle om die mandjie daarin te sit.” Ek het weer ’n droom gehad. Vier oorlogswaens het tussen twee berge uitgekom. Die berge het so ’n koper kleur gehad. Die eerste oorlogswa is deur twee bruin perde getrek. Twee swart perde was voor die tweede oorlogswa. Voor die derde oorlogswa was daar wit perde, en bont perde voor die vierde strydwa. Die perde was almal baie sterk. Ek het vir die engel gevra: Meneer, wat beteken die droom wat ek gehad het? Sy antwoord was: “Dit is vier winde wat van die hemel af kom. Die Here het hulle gestuur. Hulle gaan in verskillende rigtings. Die oorlogswa met die swart perde gaan in ’n noordelike rigting. Dié met die wit perde gaan weswaarts. Die oorlogswa met die bontes voor gaan in ’n suidelike rigting.” Die perde was sterk en vol energie. Hulle was lus om weg te spring om die patrollies oor die aarde te ry. Die Here het gesê: “Gaan ry kruis en dwars oor die aarde!” Hulle het uitgegaan om die wêreld mooi deur te kyk. Die Here het my geroep en vir my gesê: “Die oorlogswa wat noord gery het, bring my Gees daarnatoe. Ek weet nou dinge sal daar onder beheer wees.” Die Here het my ’n opdrag gegee wat ek moes doen. “Gaan vandag nog na die huis van Josia, die seun van Sefanja. Daar sal jy Geldai, Tobija en Jedaja kry wat nou net uit Babel teruggekom het. Hulle is vroeër teen hulle wil soontoe gevat. Vat die geskenke van silwer en goud wat hulle saamgebring het. Maak dan krone van die silwer en die goud en sit een op Jesua die hoofpriester se kop. Jesua is die seun van Josadak. “Sê dan vir hom: Die Here wat sterker is as alles en almal sê: ’n Man sal na vore kom wat ‘jong tak’ genoem word. Hy kom uit die familie van koning Dawid. Hy sal die tempel van die Here weer bou. Maar hy sal nie net die tempel bou nie, die mense sal hom as ’n koning sien. Hy sal op sy troon sit en die land regeer. ’n Priester sal saam met hom regeer. Hy en die priester sal goed oor die weg kom en in vrede saamwerk. “Die krone moet in die tempel van die Here bly as aandenkings aan Geldai, Tobija, Jedaja en Josia. Hulle het die krone mos as geskenke gegee. “Mense sal van oral af kom om die tempel van die Here te help bou. As dit gebeur, sal dit weer vir julle ’n bewys wees dat die Here my gestuur het. Ek praat nie sommer net wat in my eie kop opkom nie. Hierdie goeie dinge sal gebeur as julle mooi versigtig alles doen wat die Here wil hê julle moet doen.” Op sewe Desember in die vierde jaar wat Darius koning was, het die Here weer vir Sagaria gebruik om met sy volk te praat. Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en Regem-Melek en ’n paar van hulle vriende na die tempel toe gestuur. Hulle moes vir die Here gaan vra om te sorg dat dit met hulle goed sal gaan. Hulle moes ook vir die priesters by die tempel en vir die profete gaan vra wat hulle moes doen. Hulle het gesê: “Elke jaar in die vyfde maand vas ons. Dan bly ons sonder kos en huil ons omdat Jerusalem en die tempel verwoes is. Moet ons dit steeds aanhou doen soos ons nou al vir baie jare gewoond is?” Die Here het vir Sagaria gesê: “Vra ’n bietjie vir die mense van Juda en die priesters wat nou al vir 70 jaar elke jaar in die vyfde en die sewende maand sonder kos bly en huil, die volgende vraag: Het julle ter wille van My sonder kos gebly? Op julle feeste eet en drink julle, maar julle doen dit net vir julle eie plesier. Daar is mos nou niks meer nuut om daaroor te sê nie. Dit is mos dieselfde ou boodskap wat Ek lank gelede reeds vir die profete gegee het. Dit was die tyd toe daar nog baie mense in Jerusalem en in die ander stede van Juda gebly het. Toe het dit nog baie goed met almal gegaan. Mense het selfs nog in die suide van die land en op die vlaktes gebly.” Die Here het weer vir Sagaria gebruik om met die volk te praat. Sagaria het vir hulle gesê: Die Here is sterker as alles en almal! Hy sê: “In hofsake moet julle eerlik en regverdig met mense wees. Wees lief vir mekaar en werk mooi met mekaar. Moenie weduwees en kinders sonder ’n ma en pa sleg behandel nie. Julle moet natuurlik ook nie mense wat nie van Israel af kom nie en arm mense sleg behandel nie. Moenie planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie.” Julle voorouers wou nie na die Here luister nie. Hulle het gemaak of hulle nie hoor wat die Here sê nie. Hulle hart was so hard soos klip. Die Here het lank gelede al profete gebruik om sy boodskappers te wees. Hy het hulle deur sy Gees laat verstaan wat hulle vir sy volk moes sê. Maar niks wat die Here gesê het, het enige indruk op hulle gemaak nie. Dit het soos water van ’n eend se rug af gerol. Dit is hoekom die Here so kwaad vir hulle is. Die Here sê: “Omdat hulle nie na My wou luister toe Ek met hulle gepraat het nie, daarom het Ek ook nie na hulle geluister toe hulle na My geroep het nie. Soos ’n warrelwind goed rondwaai, het Ek hulle laat rondwaai en uitmekaar laat spat na al die nasies toe. Daar het hulle soos vreemdelinge gebly. Hulle eie land was so verwoes en sonder enige mense dat niemand eens meer daarnatoe wou kom nie. ’n Land wat eers so mooi was, het nou ’n plek geword waar niemand kan of wil bly nie.” Die Here het vir Sagaria gesê om weer met sy volk te praat. Hy het gesê: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Jerusalem lê My baie na aan die hart. My liefde vir die plek is so groot dat Ek woedend word as iemand enigiets verkeerds teen die stad doen. Ek sal na Jerusalem toe terugkom en weer in die stad kom bly. Mense sal Jerusalem as die Stad van Waarheid ken. Die berg waarop die tempel van die Here staan, sal ’n spesiale plek wees om die Here op te aanbid. Verder het die Here ook gesê: Ou mense met baie kennis van die lewe, mans en vroue, sal ook weer in die strate van Jerusalem met hulle kieries loop. Daar sal ook baie seuns en meisies wees wat in die strate speel.” Die Here sê: “’n Groepie van Juda se mense het oorgebly nadat hulle ’n klompie jare terug na Babel toe weggevat is. Miskien is dit nou vir hierdie mense moeilik om te glo dat die dinge gaan gebeur wat Ek gesê het Ek gaan doen. Sê My, dink julle dit is vir My onmoontlik om hierdie dinge te doen net omdat hulle dink Ek kan nie? Ek is tog die Here wat sterker as alles en almal is! Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste. Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.” Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Toe hulle met die werk aan die tempel begin het, was daar nie geld om die mense te betaal nie. Daar was ook nie geld om diere vir die werk te huur nie. Dit was toe so onveilig in die land dat niemand dit kon waag om van die een plek na ’n ander een te gaan nie. Ek het gemaak dat mense mekaar se vyande was. Maar dinge het verander. Ek sal nie meer met die klompie mense wat oor is, maak soos Ek vroeër met hulle gemaak het nie. Dit sal van nou af goed met hulle gaan. Daar sal vrede wees. Die wingerde sal druiwe dra. Verder sal die mense goeie oeste van die lande af inbring. Die hemel sal sorg vir die dou op die aarde. Ek sal dit alles doen vir hierdie klompie mense van Juda wat oorgebly het. As mense van ander volke mekaar sleg wou sê, het hulle altyd Juda en Israel as voorbeelde gebruik. Hulle het iets gesê soos: ‘Mag die slegte goed wat Juda en Israel oorgekom het, ook met julle gebeur.’ Maar dit gaan nou end kry! Ek sal julle red. Van nou af sal hulle aan julle dink as mense met wie dit baie goed gaan. Moet daarom nie bang wees nie, maar wys dat julle moed het en pak die bouwerk van die tempel aan!” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Julle voorouers het My baie kwaad gemaak. Ek het toe belowe dat Ek hulle gaan straf. Ek het woord gehou en Ek het hulle toe gestraf. Julle kan dus vir seker weet dat Ek nou ook my woord oor Jerusalem en Juda sal hou. Ek sal sorg dat dit goed gaan met Jerusalem en die mense van Juda. Julle het niks om voor bang te wees nie. Ek verwag van julle om die waarheid met mekaar te praat. As daar hofsake is, moet die uitsprake regverdig wees. Julle moet in vrede met mekaar saamleef. Moenie in die geheim slegte planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Moet ook nie vals sweer nie. Ek haat dit as julle hierdie dinge doen,” sê die Here. Die Here het my ook gebruik om te sê: “Daar was tye dat julle gewoond was om sonder kos te bly en gehuil het oor wat met Jerusalem en sy mense gebeur het. Julle het dit gewoonlik gedoen in die vierde, vyfde, sewende en tiende maand. Dit gaan nou end kry. Hierdie tye gaan nou geleenthede wees om fees te vier. Julle gaan lag en bly wees. Daarom moet julle die waarheid praat en uitleef. Sorg ook dat julle in vrede met mekaar leef.” Die Here sê ook: “Mense van ander volke en ’n klomp stede sal na Jerusalem toe kom. Die mense van die verskillende stede sal met mekaar praat en sê: ‘Kom ons gaan dadelik na Jerusalem toe en dan vra ons die Here om vir ons goed te wees. Kom ons gaan vind uit wat Hy wil hê ons moet doen. Ons is self ook op pad soontoe.’ Mense uit baie nasies, ja, selfs uit sterk nasies, sal na Jerusalem toe kom om te hoor wat die Here van hulle verwag om te doen. Hulle sal Hom ook vra om te sorg dat dit met hulle goed gaan.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Hierdie tyd wat julle verwag, sal vir seker kom. Wanneer dié tyd aanbreek, sal tien mense uit verskillende volke een Jood aan sy baadjie vasgryp. Hulle sal vir hom sê: ‘Ons wil saam met jou gaan, want ons het gehoor dat God by julle bly.’” Die Here se straf. Die Here sê die volgende oor die land Gadrak en oor die stad Damaskus: Die hele wêreld se oë is op wat die Here doen, nie net die stamme van Israel nie. Wat Hy te sê het, is ook bedoel vir Hamat, Damaskus se buurstad. Dit raak selfs ook die stede Tirus en Sidon, al dink hulle ook hulle mense is so slim en handig. Die mense van Tirus het vir hulle ’n baie veilige wegkruipplek gebou. Verder het hulle ook baie silwer en goud bymekaargemaak. Dit is so baie dat dit amper net soveel soos die stof en die modder in die strate is. Maar kyk wat gaan gebeur. Die Here gaan al Tirus se rykdom en skatte wegvat en dit in die Middellandse See gooi. So sal Hy die mag van die stad breek. Daarna sal die stad in ’n brand verwoes word. Wat gebeur, raak al die Filistynse stede. Askelon se mense sal bang word as hulle sien wat met Tirus gebeur. Die mense in Gasa en Ekron sal aan die bewe gaan omdat hulle bang is. Al die goed wat hulle gedink het belangrik is in die lewe, verdwyn net skielik. Gasa sal sy koning verloor en Askelon sal ’n verlate stad sonder enige mense wees. Asdod sal deur mense van gemengde afkoms oorgeneem word. Die Here sê: “Die Filistyne dink verskriklik baie van hulleself. Ek sal hulle nederig maak. Hulle eet vleis met bloed in. Ek sal dit uit hulle mond uitruk. Ek sal ook keer dat hulle ander kos eet wat Ek verbied het.” Die Filistyne wat oorbly, sal deel van die Here se volk word. Hulle sal soos ’n nuwe stam in Juda wees. Die mense van Ekron sal net soos die Jebusiete destyds in die volk van die Here opgeneem word. Die Here sê: “Ek sal my land en alles wat aan My behoort, baie goed oppas. Ek sal dit beskerm teen mense wat die land wil inval. Ek sal nie toelaat dat enige vreemde mag weer my volk aanval nie. Ek sal self my oog oor hulle hou en hulle goed oppas.” Wees baie bly, mense van Sion! Skree hard, inwoners van Jerusalem! Julle koning is op pad na julle toe. Hy tree altyd regverdig op en hy is ’n wenner. En tog is hy nederig. Hy ry sommer op ’n donkie. Die Here sê: “Ek sal al die goed wegmaak wat hulle in Israel en in Jerusalem gebruik om mee oorlog te maak. Dit is dinge soos strydwaens, perde en pyle en boë. Ek sal dit alles vernietig. Julle koning sal ook vir die nasies vrede bring. Hy sal van die een see tot die ander see, van die Eufraatrivier tot by die einde van die aarde, koning wees.” Die Here sê verder ook: “Ek was baie ernstig met die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het. En om te bewys hoe sterk hierdie ooreenkoms is, is dit met bloed gesluit. Omdat Ek My in hierdie ooreenkoms laat bind het, sal Ek julle mense vrymaak uit ballingskap. Die inwoners van Juda sal nie langer as gevangenes in ’n vreemde land aangehou word nie. Daar is hoop vir julle wat gevang en uit julle land weggevat is. Kom terug na julle land toe sodat julle veilig kan wees! Ek belowe julle vandag dat Ek julle dubbel soveel sal gee as wat julle vroeër gehad het. Soos ’n soldaat ’n pyl en boog en ’n swaard as wapens in ’n geveg gebruik, so sal Ek met Juda, Israel en Jerusalem maak. Ek sal hulle as my wapens teen die Grieke gebruik.” Die Here sal bokant sy mense gesien word. Sy pyl sal soos ’n weerligstraal uitskiet. Hy sal op die trompet blaas om te wys dat die geveg begin het. Soos ’n stormwind uit die suide val Hy dan die vyand aan. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sal sorg dat niemand sy volk kwaad aandoen nie. Hulle sal die vyande met eenvoudige wapens wen. Hulle sal soos dronk mense skree terwyl hulle baklei en hulle vyande doodmaak. Hulle klere sal vol bloed wees van die bloedige geveg met die vyand. Die dag wanneer hierdie geveg uitbreek, sal die Here hulle God hulle red. Hy sal hulle beskerm en versorg soos ’n herder met sy skape maak. Hulle sal ook soos ’n juweel in ’n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land. Hoe wonderlik en mooi sal hulle nie wees nie! Die jongmense sal sterk en gesond wees omdat daar meer as genoeg koring en wyn is. Vra die Here vir reën in die lente en Hy sal dit gee. Dit is die Here wat die reënwolke maak en hulle laat stortreën. Hy sorg dat daar genoeg groen weiding in die veld vir almal is. Baie mense soek hulp en raad by die afgodsbeeldjies wat in hulle huise is. Ander mense weer vra hulp by mense wat sê dat hulle die toekoms vooruit kan vertel. Die raad wat hulle kry, is niks werd en niks anders as leuens nie. Mense wat sê dat hulle drome uitlê, bedrieg ander mense. Die troos wat hulle kastig vir mense gee, help nie regtig nie. My volk is nou soos verdwaalde skape wat nie ’n herder het om hulle te beskerm of rigting te gee nie. Hulle is leierloos! Die Here sê: “Ek is baie kwaad vir hierdie leiers wat na die mense moes kyk. Ek gaan hulle straf. Ek is my volk Juda se herder en Ek sal hulle versorg.” Die Here sal sorg dat hulle weer trots op hulleself is. Uit Juda sal al die leiers vir die toekoms kom. Hulle sal soos die hoeksteen van ’n gebou wees. Hulle sal wees soos die pen wat die tent anker en regop hou of soos die boog wat in gevegte gebruik word. Hulle sal soos dapper mense wees wat oorlog maak. Hulle sal hulle vyande heeltemal verslaan. Die vyand sal soos modder onder hulle voete vertrap word. Omdat die Here by hulle is wanneer hulle veg, sal hulle selfs die vyand se soldate wen wat op perde ry. Die Here sê: “Ek sal Juda wat in die suidelike deel van Palestina bly, weer sterk maak. Israel wat in die noorde van die land woon, sal Ek red. Ek sal hulle na hulle land toe laat terugkom omdat Ek hulle liefhet. Dit sal wees of Ek hulle nooit van My af weggestoot het nie. Ek is die Here hulle God wat antwoord gee op die gebede wat hulle gebid het. Die mense van Israel sal soos dapper soldate wees. So bly sal hulle wees dat mense sal dink hulle het te veel wyn gedrink. Hulle kinders sal alles sien wat gebeur en bly wees daaroor. Hulle sal baie bly wees oor wat die Here gedoen het. As Ek ’n teken gee, sal my volk bymekaarkom. Hulle weet Ek wil hulle weer vrymaak. Hulle sal weer net soveel mense wees soos hulle was voordat hulle uit hulle land weggevat is. Ek het toegelaat dat hulle soos saad oral tussen volke gestrooi word. Maar al is hulle daar in die vreemde lande, sal hulle nie van My vergeet nie. Hulle en hulle kinders sal die omstandighede daar oorleef. Hulle sal na Israel toe terugkom. Ek sal hulle uit Egipte en Assirië terugbring en hulle weer in die Gileadgebied en Libanon laat bly. Daar sal amper nie genoeg plek vir hulle almal wees om te bly nie. Hulle sal deur die onstuimige waters van die see gaan, want die golwe sal vir hulle ’n pad maak. Verder sal die water van die Nyl opdroog. Assirië is baie neus in die lug, maar hulle sal hard aarde toe kom. Egipte sal ook nie langer baasspeel oor ander mense nie. Ek sal my mense sterk maak. Hulle sal sekere goed doen wat Ek, die Here, hulle die mag sal gee om te kan doen. Ek, die Here wat sterker as alles en almal is, het dit gesê.” Libanon, maak jou grense oop sodat vreemde mense kan inkom en jou grond kom verniel. Hulle sal soos ’n vuur wees wat die seders verbrand tot net die as oorbly. Huil, sipresbome, want baie van die sederbome het in die slag gebly. Die mooiste en beste bome is vernietig. Huil, akkerbome van Basan, want net stompe het in die digte bos oorgebly. Hoor hoe huil die leiers. Alles waarop hulle so trots was, is daarmee heen. Hoor hoe brul die leeus. Die bosse langs die Jordaan waar hulle altyd kon wegkruip, is nou verwoes. Die Here, wat die God is wat ek aanbid, het vir my gesê: “Pas hierdie volk op soos ’n herder sy skape oppas. Wat met hierdie skape gaan gebeur, is erg; hulle is op pad slagpale toe om geslag te word. Die mense wat hierdie skape koop, voel nie eers ’n tikkie sleg om hulle te slag nie. As hulle die skape nie slag nie, verkoop hulle hulle en sê: ‘Prys die Here, nou is ons ryk.’ Die herders gee ook niks vir die skape om nie.” Die Here sê: “Ek gee ook nie meer om vir die mense wat in die land bly nie. Ek gaan mense met mekaar laat maak nes hulle wil. Ek gaan hulle ook aan die koning oorgee om met hulle te maak net soos hy lus het. Hierdie leiers sal die land verwoes, maar Ek is nie van plan om enigiemand te beskerm nie.” Ek het die mense begin oppas en versorg net soos ’n herder die vee van die veehandelaars sou oppas. Hierdie vee was bedoel om geslag te word. Vir dié takie het ek vir my twee kieries in die hande gekry waarmee ’n mens skape oppas. Ek het die een kierie Vriendelikheid genoem en die ander een Saamwees. Sommer in die eerste maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar nie lank nie of ek het begin moeg raak vir die mense wat ek versorg. Maar hulle het ook nie veel ooghare vir my gehad nie; om die waarheid te sê, hulle het my gehaat. Ek het toe vir hulle gesê: “Ek stel nie langer daarin belang om julle oppasser te wees nie. As julle doodgaan, is dit nou maar daarnatoe. En as julle wegraak, is dit nou maar julle lot. In elk geval sal die mense wat oorbly, mekaar uitroei.” Ek het toe my kierie met die naam Vriendelikheid gevat en dit middeldeur gebreek. Ek het dit gedoen om vir hulle te wys dat ek die ooreenkoms wat ek met die volke gemaak het, nie langer gaan hou nie. Op dié manier is die ooreenkoms met hulle daarmee heen en verbreek. Die veehandelaars het alles so gekyk en besef dit is eintlik die Here self wat deur alles wat gebeur het, met hulle praat. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink ek is dit werd, gee my my betaling vir die werk wat ek gedoen het. As julle nie wil nie, los dit dan.” Hulle het my toe 30 silwermuntstukke betaal. Die Here het vir my gesê: “Gooi die geld in die geldhouer van die tempel.” Die sommetjie geld was al wat hulle gedink het ek werd is. Ek het die 30 silwermunte gevat en dit in die geldhouer van die tempel van die Here gegooi. Daarna het ek die ander kierie met die naam Saamwees gebreek. Van saamwees tussen Juda en Israel sou daar nie langer gepraat kon word nie, want die band tussen hulle is verbreek. Toe sê die Here vir my: “Gaan speel weer die rol van ’n herder, maar hierdie keer as een wat niks werd is nie. Ek gaan vir hierdie volk ’n leier gee wat nie vir hulle omgee nie. Hy sal net soos ’n slegte herder wees. Dit sal hom nie pla as sy mense wegraak nie. Hy sal ook nie die jonges soek wat afdwaal nie. Verder sal hy ook nie dié verpleeg wat seerkry nie. Hy sal ook nie sorg dat dié wat gesond is kos kry nie. Hy sal net kyk wat hy vir homself uit alles kan kry. Hy sal mense gebruik en misbruik tot sy eie voordeel. Hy laat sy mense in die steek; daarom is swaarkry sy voorland. Mag ’n swaard sy arm en sy regteroog wond! Mag dit so wees dat hy nie weer sy arm kan gebruik nie en dat hy blind in sy regteroog sal wees!” Die Here sê wat met Israel gaan gebeur. Dit is die Here wat die uitgestrekte hemel gemaak en die fondasie van die aarde gelê het. Hy gee vir mense lewe. Verder sê die Here: “Die nasies in die omgewing sal Jerusalem probeer inval. Maar Ek gaan sorg dat Jerusalem so ’n bedwelmende uitwerking op hulle sal hê dat hulle soos ’n klomp dronk mense sal wees. Wanneer Jerusalem ingeval word, sal al die ander stede in Juda ook ingeval word. Al die nasies van die wêreld sal hulle kragte bymekaarsit teen Jerusalem, maar Ek sal Jerusalem soos ’n swaar rotsblok maak. As hulle hierdie rots probeer oplig, sal hulle seerkry.” Die Here sê: “Die dag wanneer hierdie nasies Jerusalem aanval, sal Ek hulle perde op hol jaag. Ek sal sorg dat hulle niks kan sien nie. Ek sal ook dat die ruiters kop verloor. Maar oor die mense van Juda sal Ek ’n oog hou en hulle mooi oppas. Die families van Juda sal dan erken: ‘Die Here is sterker as alles en almal. Hy gee aan die mense van Jerusalem moed en durf, want Hy is hulle God.’” Die Here sê: “Wanneer die verwagte tyd kom, sal Ek die families van Juda soos ’n vuur maak wat ’n hoop hout aan die brand steek. Hulle sal soos ’n fakkel wees wat gerwe koring aan die brand steek. Juda se mense sal al die volke om hulle soos ’n vuur verbrand, maar Jerusalem sal net so sonder enige skade bly staan.” Die Here sal eers die mense van Juda vrymaak wat nie in Jerusalem bly nie. Hy doen dit sodat die mense van Jerusalem en koning Dawid se familie nie meer eer kry as die res van Juda se mense nie. In dié tyd sal die Here die mense van Jerusalem beskerm. Die swakste mense onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid. Op sy beurt sal Dawid se nageslag soos God self wees of soos die engel van die Here wat hulle lei. Die Here sê: “Ek sal al die volke vernietig wat teen Jerusalem in opstand kom!” “Ek sal in hierdie tyd Dawid se kinders en hulle kinders en ook die inwoners van Jerusalem mense maak wat omgee vir ander mense. Ek sal hulle ook mense maak wat graag wil bid. Hulle sal dan weet dat Ek die een is wat hulle seergemaak het soos iemand wat hulle met ’n wapen gesteek het. Hulle sal vreeslik huil, soos mense wat huil oor hulle enigste kind of oudste seun wat dood is. “Die dag as hierdie dinge gebeur, sal hulle in Jerusalem net so erg huil soos die mense gehuil het oor Hadad-Rimmon op die vlakte van Megiddo. Oor die hele Israel sal die mense hartseer huil. Die families in Israel sal elkeen op sy eie treur. Dit sluit in die families van Dawid, Natan, Levi en Simeï, elkeen op sy eie. So sal al die ander families in Israel ook maak. Hulle sal almal treur en huil, die mans eenkant en die vroue in hulle groepe saam.” Wanneer die dag kom wat hulle verwag, sal ’n waterfontein oopgemaak word. By hierdie fontein sal Dawid se nageslag en die mense wat in Jerusalem bly, hulle was. Soos ’n mens jou was met water om skoon te kom, so sal hulle hulle was om ontslae te raak van alles wat hulle verkeerd gedoen het. Die Here is sterker en magtiger as alles en almal. Hy sê: “In dié tyd sal Ek sorg dat niemand in die land eens aan afgode sal dink of hulle name sal onthou nie. Ek sal nog verder as dit gaan. Ek sal al die mense wat maak of hulle profete van die Here is, uit die land laat verdwyn. Daarmee saam sal Ek die lus wegvat wat mense het om ander gode te aanbid. As iemand nog maak of hy so ’n profeet is, sal sy eie ma en pa vir hom sê: ‘Jy moet nie langer bly leef nie, want jy vertel leuens en dan maak jy of jy dit wat jy sê, by die Here gekry het.’ Sy eie ma en pa sal hom doodsteek omdat hy vals is.” In dié tyd sal die profete skaam wees om vir mense te vertel van die drome wat hulle gehad het. Hulle sal mense ook nie meer probeer flous nie. Daarom sal hulle nie die klere aantrek waaraan ’n mens kan sien dat hulle profete is nie. Hulle elkeen sal sê: “Nee, ek is nie ’n boodskapper van die Here nie, ek is ’n boer. Ek werk nog my hele lewe lank as ’n boer.” As iemand hom sou vra oor die littekens wat op sy bors is, sal hy antwoord: “Ek was by vriende se huis toe ek gewond is.” Die Here is magtiger en sterker as alles en almal. Hy sê dat die man wat vir Hom werk en sy volk oppas soos ’n herder skape oppas, met ’n swaard doodgemaak sal word. As hy dood is, sal die skape in verskillende rigtings uitmekaarspat. Die Here sal ook nie die gewone mense spaar nie. Twee derdes van die mense sal uit die land weggeneem word en hulle sal doodgaan. Die ander derde sal in die land agterbly. Die Here sê: “Ek sal hierdie derde van die mense wat in die land agterbly, suiwer maak. Ek sal dit doen soos daar gewoonlik met goud gemaak word. Die goud word in vuur gesmelt en suiwer gemaak. My volk sal deur moeilike omstandighede gaan, maar hulle sal beter mense anderkant uitkom. Hulle sal in gebed met My praat en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê: ‘Hulle is my eie mense, hulle behoort aan My.’ Op hulle beurt sal die mense sê: ‘God is ons Here.’” Neem kennis, Jerusalem, daar kom ’n dag dat die Here straf sal uitdeel. Op dié dag sal alles wat jy het, gevat word en voor jou oë verdeel word. In dié tyd sal die Here al die nasies bymekaarmaak om oorlog teen Jerusalem te maak. Hulle sal die stad inneem en die goed in die huise steel. Erger nog, hulle sal die vroue in Jerusalem onsedelik aanrand. Hulle sal die helfte van die stad se mense uit die land wegvat. Die ander helfte sal in die stad kan bly. Die Here sal dan optrek en teen die nasies baklei soos Hy al in die verlede gedoen het. In dié spesifieke tyd sal die Here op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Wanneer dit gebeur, sal die Olyfberg middeldeur skeur. Die een helfte sal noord padgee en die ander helfte suid. Dit sal maak dat daar ’n groot kloof sal wees wat van oos na wes loop. Julle sal deur hierdie kloof in die berg ontsnap en tot so ver as die sykant van die berg kan gaan. Julle sal moet vlug net soos julle vroeër in koning Ussia van Juda se tyd vir die aardbewing moes vlug. Dan sal die Here wat my God is, kom en al die hemelwesens saam met Hom. Daardie dag sal daar nie lig of koue of ryp wees nie. Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly. In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop. Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word. Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word. Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie. Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge. In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan. Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word. Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet. Wat na alles sal gebeur, is dat die vyande van Jerusalem wat nie van die siekteplaag dood is nie, elke jaar na die stad toe sal terugkom. Wanneer hulle kom, sal dit wees om eer te kom bewys aan die Koning, die Here wat sterker as almal en alles is. Hulle sal ook kom om die fees te vier waar daar altyd hutte van takke gebou word. As daar enige volk êrens op aarde is wat nie na Jerusalem toe wil kom om die Here, die Koning, te kom vereer nie, sal dit nie by hulle reën nie. En as die mense van Egipte nie na die fees toe wil kom nie, sal die Here hulle straf. Dieselfde vreeslike siekte sal hulle aantas wat ander nasies getref het wat geweier het om Hom te kom dien. Die mense van Egipte sal saam met die ander volke gestraf word as hulle nie die fees van die hutte wil kom vier nie. In dié tyd sal daar selfs op die klokkies aan die perde se tuie geskryf staan: “Spesiaal bedoel vir die Here.” Die potte wat in die tempel van die Here gebruik word om in te kook, sal net so belangrik wees as die potte wat by die offeraltaar gebruik word. Wat sal gebeur, is dat elke kookpot in Jerusalem en Juda gebruik sal word in diens van die Here. Enige mens wat sal kom om die Here te eer sal hierdie potte mag gebruik om hulle offervleis in te kook. Daar sal in hierdie tyd ook nie meer mense wees wat in die tempel van die Here koop en verkoop nie. Hy is die Here wat sterker is as alles en almal. Hierdie is ’n boodskap vir Israel deur Maleagi uit die hart van die Here uit. Ek het julle baie lief, sê die Here, maar julle sê heel verbaas: Regtig? Waar is die bewys dat U ons liefhet? Kom Ek antwoord julle so: Ek het my liefde vir julle bewys deur Jakob lief te hê. Esau het Ek aan homself oorgelaat, al was hy Jakob se broer. Daarom is sy bergland vandag soos ’n kaal vlakte en is dit nie sy kinders wat daar bly nie, maar net ’n klomp woestynjakkalse. Sy kinders daar in Edom sou natuurlik kon sê: “Al lyk dit nou sleg, ons sal weer voor begin!” Vir hulle sê Ek, die God vir wie niks onmoontlik is nie, julle kan soveel huise bou as wat julle wil, dit sal nooit ’n stad word nie. Om die waarheid te sê, julle sal eerder op ’n bynaam genoem word: die goddelose dorp en mense vir wie die Here vir altyd kwaad is. Julle sal dit met julle eie oë sien en dan sal julle nie anders kan nie as om te sê: “Maar die Here is in beheer selfs tot anderkant Israel se grense.” ’n Kind respekteer tog sy pa en ’n werknemer sy hoof. Julle noem My julle Vader en julle Here, maar waar is die eer en respek wat Ek dan moet kry? Dit wil Ek, wat die Grootkoning is, by julle weet, priesters, want julle maak My belaglik voor die mense. En tog vra julle ewe onskuldig: “Wanneer het ons U ooit belaglik gemaak?” Kyk ’n bietjie na die soort offers wat julle vir My bring. Julle gee nie om hoe hierdie offers lyk nie. En dan vra julle nog: “Wanneer het ons U nie gerespekteer nie?” Deur nie te bring wat Ek wil hê nie, is net so goed as om jou neus vir My op te trek en te sê: “Vat wat jy kry.” Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou. Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld. Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God. Mense oor die hele wêreld eer My. Die offers wat hulle vir My bring, is aanvaarbaar, want hulle bedoel dit uit die hart uit. Op hierdie manier bewys hulle dat hulle respek het vir My as die Here aan wie alles behoort. Julle optrede is sonder respek. Julle nooi My as ’n gas, maar dit waarmee julle die tafel vir My dek, is goed wat julle self nie eens wil hê nie. En dan trek julle nogal die neus vir My op en sug oor hoe moeilik dit is om die Here tevrede te stel. Gaan kyk ’n bietjie wat bring julle vir My as offers: gesteelde, lam en siek diere; dis mos nie aanvaarbaar nie. As iemand belowe het om vir My die beste te gee wat hy het en hy kom dan later daar aan met iets minderwaardigs, moet hy weet dit sal baie swaar met hom gaan. Want Ek laat My nie bedrieg nie. Ek is die Grootkoning, die Here aan wie alles behoort. Die volke van die wêreld het respek vir My. Die volgende stukkie advies van die Here, die Grootkoning, is vir julle bedoel, priesters. Julle optrede moet bewys dat julle My eer en respekteer. As julle nie wil luister nie, gaan Ek dit baie moeilik maak vir julle. Ek gaan al julle voordele wegvat wat vir julle so belangrik is. As julle mooi gaan kyk, sal julle agterkom dat Ek dit alreeds begin doen het omdat julle nie luister na wat Ek vir julle sê nie. Julle sal nie kinders hê wat julle naam kan laat voortleef nie. Ek sal julle nog verder in die verleentheid bring deur die mis van die offers in julle gesigte te laat spat. In plaas daarvan dat julle met respek behandel word, sal die mense hulle neuse vir julle optrek asof julle soos vuilgoed op die ashoop ruik. Dan sal julle dalk verstaan dat dit Ek is, die God wat nooit op sy woord teruggaan nie, wat vir julle hierdie waarskuwing gestuur het sodat die ooreenkoms wat Ek met Levi gemaak het, kan voortgaan. In hierdie ooreenkoms het Ek belowe dat Ek hom lank sal laat lewe en dat Ek elke dag sal toesien dat hy versorg is en niks nodig het nie sodat hy sy werk vir My rustig en sonder bekommernis kan doen. Van my kant af het Ek die ooreenkoms nagekom en hy het respek en eer aan My bewys. Wat hy die mense geleer het, was die waarheid, want hy het dit by My gehoor. Omdat hy nie bang was om die waarheid reguit te praat nie, het dit baie mense laat besluit om My te dien en nie meer sonde te doen nie. ’n Priester moet die mense kan leer wie en wat God is, dis sy werk. Hy moet ’n voorbeeld wees van hoe my kinders My moet dien, want hy is die verteenwoordiger van die Here, die Grootkoning. Ongelukkig, priesters, kon dit nie van julle gesê word nie. Julle het baie mense mislei omdat julle hulle verkeerd geleer het. So het julle ’n streep deur my ooreenkoms met Levi getrek. Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het. Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg? Dit wat in Juda en Israel en in Jerusalem gebeur, is skandelik. Die mans van Juda trou met buitelandse vroue wat God glad nie dien nie, en dan kom hulle na die Here se heilige tempel toe om te kom offer asof daar niks mee verkeerd is nie. Mag die Here hierdie losbandige mense uit die gemeenskap wegvat en hulle nooit weer toelaat om deel van die gemeente van die Here te word nie. Daar is nog iets wat julle doen. Julle kerm en kreun en huil omdat die Here volgens julle nie julle offers wil aanvaar nie. Maar daar is ’n rede daarvoor. Dis omdat die Here weet dat jy ontrou geword het aan die vrou met wie jy getrou het toe jy jonk was. Sy was nog altyd jou maat wat daar was vir jou in goeie en moeilike tye. Maar jy het al jou troubeloftes teenoor haar gebreek. Niemand wat nog ’n bietjie verstand het, maak só nie. Wat dink jy was God se doel toe Hy julle in die huwelik soos een mens gemaak het? Was dit nie juis dat julle kinders sou hê wat God sou ken en dien nie? Maar as jy so maak, gaan dit nie gebeur nie. Moenie toelaat dat jou emosies so met jou weghardloop dat jy die kosbaarste besitting wat jy het deur swak besluite verloor nie. “Ek haat egskeiding!” sê die Here, die God van Israel. Ek kan dit nie verdra as iemand so gevoelloos teenoor sy vrou optree nie. Dink mooi na oor wat jy doen en moenie jou belofte om aan jou vrou getrou te wees sommer net breek nie. Al julle gepraat maak die Here moeg. En weereens sê julle julle kan dit nie verstaan nie. Maar tog hou julle aan sê: “God hou so baie van die slegte mense dat Hy hulle nie eens straf oor wat hulle verkeerd doen nie.” En julle wat mekaar om elke hoek en draai loop en bedrieg, wil heel verwaand weet: “Waar is die God wat veronderstel is om reg te doen?” Ek is die Here wat altyd reg optree; daarom stuur Ek solank my boodskapper voor My uit om alles reg te kry vir dié dag wanneer Ek na julle toe kom om hieroor met julle te praat. En as alles reg is, kom Ek gouer as wat julle kan dink om in die tempel hierdie saak met julle uit te maak. Ek weet julle is opgewonde oor die dag waarop my boodskapper julle sal kom besoek en met julle oor my ooreenkoms met julle gaan praat. En ja, dié dag is vinniger op pad as wat julle dink. Ek is net nie so seker dat julle weet wat op julle wag nie. Want wanneer dié dag kom, gaan dit ’n verskriklike dag wees. Hy sal julle laat dink aan ’n witwarm vuuroond waarin hulle yster smelt of aan die sterkste seep waarmee jy baie vuil klere moet was. Iemand wat silwer smelt, weet daar is vuilgoed in die silwer. As hy dit warm genoeg maak, dryf die vuilgoed naderhand bo-op. Al wat hy dan hoef te doen om die silwer skoon te kry, is om die vuilgoed af te skep en weg te gooi. Dit is wat hy met die priesters gaan kom doen. Hy gaan die verkeerde goed wat hulle doen, skoonmaak sodat hulle weer die regte soort offers vir die Here kan bring. Dan sal die Here weer die mense van Juda en Jerusalem se offers aanvaar soos Hy dit voorheen gedoen het. Ek gaan na julle toe kom soos ’n regter wat moet uitspraak lewer en ’n getuie wat nie bang is om die waarheid te praat nie, sê die Here wat reg doen. Die mense wat Ek gaan aankla, is: mense wat hulle met slegte dinge besig hou en almal bangmaak met hulle sondes; mense wat hulle eie huwelik en dié van ander opbreek omdat hulle ontrou is; mense wat leuens vertel; oneerlike werkgewers wat nie die mense wat vir hulle werk, betaal wat hulle werd is nie; mense wat misbruik maak van ander wat nie vir hulleself kan sorg nie, soos weduwees en kinders wat nie ouers het om na hulle te kyk nie; mense wat voordeel trek uit ander mense wat vreemd is in hulle dorp en nie weet hoe alles werk nie; en almal wat nie respek het vir My as die Here wat altyd reg doen nie. Ek is die Here. Daarom het Ek nog nooit verander soos julle beweer nie. Maar julle het ook nog nooit verander nie. Julle bly nog steeds Jakob se kinders wat net soos hy altyd loop en bedrieg. Ten spyte daarvan het Ek julle nog nooit aan julleself oorgelaat nie. Julle is net soos julle voorouers. Hulle het ook die rug vir My gedraai en nie gedoen wat Ek van hulle gevra het nie. Wil julle nie omdraai en weer terugkom na My toe nie? Ek wil graag weer my hande na julle toe uitsteek en julle terugvat. Maar nou vra julle: “Hoekom moet ons terugkom as ons nog nooit weg was nie?” Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg? Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel. Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë. Ek sal sorg dat julle lande weer goeie oeste het en julle wingerde se druiwe volop sal wees, sê die Here van die oorvloed. Julle land sal so ’n wonderlike plek wees dat die mense van die ander lande sal sê: “Kyk hoe seën die Here hulle.” Julle sê lelike goed oor My wat My baie seermaak, sê die Here. En nou wil julle weet: “Wat het ons gesê wat so verkeerd is?” Kom Ek herhaal julle woorde vir julle: “Dit hou nie vir ons enige voordeel in om die Here te dien nie. Wat help dit om te probeer doen wat Hy sê en met ’n lang gesig te loop om te wys ons is jammer oor wat ons verkeerd gedoen het? Wat ons betref, is die gelukkigste mense dié wat selfsugtig is. Kyk hoe goed gaan dit met die slegte mense. Asof dit nie genoeg is nie, doen hulle net wat hulle wil en God doen niks aan hulle nie.” Toe het die mense wat die Here baie liefhet, met mekaar oor die Here begin praat. Die Here het baie mooi na hulle geluister. Dit het sy hart geraak. Hy het seker gemaak dat hulle name in sy persoonlike dagboek opgeteken word sodat Hy nooit van hulle vergeet nie. Daarom sê die Here, die Grootkoning: Hulle is my kinders vir wie Ek omgee. Op die dag wanneer Ek rekenskap kom vra, sal hulle vir My soos ’n baie kosbare besitting wees. Ek sal hulle teen my bors vasdruk soos ’n pa met ’n kind maak vir wie hy baie lief is. Dan sal julle die verskil sien tussen wat met onverskillige, slegte mense aan die een kant gebeur en hoe Ek die mense wat My liefhet aan die ander kant versorg; die verskil tussen hulle wat vir My luister en dié wat dink hulle weet alles. Onthou, die dag van afrekening kom. ’n Mens sou dit kon vergelyk met ’n verskriklike warm vuur. Op daardie dag sal die selftevrede, beterweterige mense wat gedink het God is iemand met wie jy speletjies kan speel, soos fyn houtjies in ’n vuur wees. Die vlamme sal nog skaars aan hulle raak, dan is hulle klaar tot as verbrand. Daar sal niks van hulle oorbly nie, sê die Here, die Grootkoning. Maar vir dié van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal my verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom. Dan sal julle soos opgewonde kinders wees wat ’n nuwe geskenk kry. Julle sal nie kan wag om vir almal daarvan te vertel nie. Op daardie dag sal die onverskillige mense agterkom dat hulle niks is nie, maar julle sal sien dat die Here sy beloftes hou teenoor die mense wat Hom liefhet en na Hom luister. Nadat Ek Moses op Sinai ontmoet het en hom vertel het wie Ek is, het hy julle geleer hoe om My lief te hê. Gaan leef dit elke dag uit, want dit is wat Ek van my kinders verwag. Voordat die dag van afrekening kom, sal Ek die profeet Elia as ’n boodskapper vir julle stuur. Deur sy preke sal verhoudings tussen mense weer regkom. Veral die verhouding tussen ouers en hulle kinders sal weer herstel word sodat dit nie vir My nodig sal wees om die land te kom verwoes omdat die mense mekaar nie liefhet soos Ek hulle liefhet nie. Nuwe Testament My verhaal oor Jesus Christus begin met sy geslagsregister. Dit bevat die name van sy voorouers. Die belangrikste twee persone in sy geslagsregister is Dawid, die groot koning van Israel, en Abraham, die man met wie God ’n baie belangrike ooreenkoms gemaak het. Abraham was Isak se pa. En Isak was Jakob se pa. Jakob was die pa van Juda en sy broers. Op sy beurt was Juda die pa van die tweeling Peres en Serag. Hulle ma se naam was Tamar. Haar seuns was Peres en Serag. Peres was Gesron se pa, en Gesron die pa van Ram. Ram was Amminadab se pa, terwyl Amminadab die pa van Nagson en Salmon was. Salmon was getroud met Ragab. Hulle het ’n seun gehad met die naam Boas. Sy vrou se naam was Rut. Sy was ’n Moabiet. Hulle het hulle seun Obed genoem. Obed se seun was Isai. Isai was die pa van koning Dawid. Dawid was Salomo se pa. Salomo is gebore uit die verhouding tussen Dawid en Batseba. Salomo het ’n seun gehad met die naam Rehabeam. Hy was die pa van Abia, en Abia die pa van Asa. Asa was Josafat se pa, terwyl Josafat die pa van Joram was. Joram se seun was Ussia, en Ussia se seun was Jotam. Jotam se seun was Agas. Agas het ’n seun gehad met die naam Hiskia. En Hiskia het ’n seun gehad met die naam Manasse. Op sy beurt was Manasse die pa van Amon. Amon was die pa van Josia, en Josia was die pa van Jojagin en sy broers. In daardie tyd is die Israeliete as slawe na Babilonië toe weggevoer. God het gesorg dat die Babiloniese ballingskap nie ’n einde aan die geslagsregister van Jesus gemaak het nie. Jojagin het kort daarna ’n seun gehad met die naam Sealtiël. Sealtiël se seun was Serubbabel. Op sy beurt was Serubbabel die pa van Abihud, en Abihud die pa van Eljakim. Eljakim het ’n seun gehad met die naam Asor. Asor was die pa van Sadok, en Sadok die pa van Agim. Agim het sy seun Elihud genoem, terwyl Elihud sý seun Eleasar genoem het. Eleasar was weer die pa van Mattan. Mattan was die pa van Jakob. Jakob was die pa van Josef, die man van Maria. Sy is die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het. En Jesus is natuurlik die Messias, die Gestuurde van God. In Jesus se geslagsregister is daar veertien geslagte van Abraham tot by Dawid. Daarna, van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap, is daar nog veertien geslagte. Na hierdie groot krisis in Israel se geskiedenis is daar nog veertien geslagte tot by Christus se geboorte. Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom. Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.” So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.” (As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.) Toe Josef wakker word, het hy presies gedoen wat die engel vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou. Hy het egter nie by haar geslaap totdat haar Seun gebore is nie. Toe die Kindjie gebore is, het Josef Hom Jesus genoem. Jesus is in die dorp Betlehem gebore. Dit is in die landstreek van Judea. In daardie tyd was Herodes die Grote die koning van die mense in Palestina. ’n Paar sterrekenners uit die ooste het kort na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom. Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.” Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf: “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.” Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.” Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre. Later het die geleerdes weer ’n droom gehad. ’n Engel het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle eie land teruggegaan. Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.) So het die woorde van Jeremia ook waar geword: “In Rama het die mense ’n harde stem gehoor. Dit klink soos iemand wat verskriklik huil. Dis Ragel! Sy huil oor al haar kinders. Niemand kan haar troos nie, want haar kinders is dood.” Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.” Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe. Daar aangekom, het hy gehoor dat Herodes se seun Argelaus die nuwe koning van Judea was. Hy was toe skrikkerig om daar te gaan bly. Terwyl Josef nog wonder wat hy moes doen, het hy weer in ’n droom ’n boodskap van God af gekry, hierdie keer om na die gebied van Galilea toe te gaan. Daar het Josef en sy gesin in ’n dorpie met die naam Nasaret gaan bly. So het die profete se woorde waar geword dat die Verlosser ’n Nasarener genoem sou word. In daardie tyd het Johannes die Doper ook op die toneel verskyn. Hy het in die woestyn van Judea gepreek. Johannes het vir die mense wat na hom kom luister het, gesê: “Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande.” Die profeet Jesaja het ook al na Johannes verwys. Hy skryf oor hom: “Daar is ’n man in die woestyn wat hard uitroep. Hy sê: ‘Vat al die hindernisse uit die Here se pad uit. Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is!’” Johannes se klere was van kameelhare gemaak. Hy het dit met ’n leerbelt om sy lyf vasgemaak. Sy kos was sprinkane en heuning. Dié het hy in die veld gekry. Kort voor lank was Johannes die Doper groot nuus. Mense het van oraloor na hom toe gestroom. Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei. Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop. Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi? Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes. Moenie julleself bluf deur te sê Abraham is julle pa nie. Dit tel nie by God nie. Hy trek nie mense voor wat uit Abraham se nageslag kom nie. As sulke dinge vir God belangrik was, kon Hy mos die klippe wat hier rondlê in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.” Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak. “Hierdie belangrike Man wat na julle toe op pad is, sal al die koring van die kaf kom skei. Hy gaan ’n duidelike streep trek tussen mense wat na God luister, en mense wat nie na Hom luister nie. Vir almal wat doen wat Hy sê, sal Hy ’n plek gee in God se nuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God se voorskrifte steur nie, sal Hy in die hel gooi. Daar gaan hulle gepynig word in ’n vuur wat nooit ophou brand nie.” In daardie tyd, terwyl Johannes besig was om te preek, het Jesus van Galilea af na die Jordaan toe gekom. Hy wou ook hê dat Johannes Hom moes doop. Maar Johannes wou dit nie doen nie. “Nooit nie! Ek behoort eintlik deur U gedoop te word!” het Johannes geskok gesê. “U is mos nie ’n sondaar soos al die ander mense wat ek doop nie. Hoekom kom U na my toe dat ek U moet doop?” Jesus wou nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel. “Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld te red.” Toe Johannes dit hoor, het hy dadelik ingestem. Toe Jesus ná sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos ’n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal. Toe praat ’n stem uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!” Kort na sy doop het die Heilige Gees Jesus na die woestyn toe laat gaan. Daar moes Hy deur die duiwel op die proef gestel word. Veertig dae lank het Jesus niks geëet nie. Hy het toe honger geword. Dit was natuurlik net die geleentheid waarop die duiwel gewag het. Hy het vir Jesus kom sê: “Kyk, as jy regtig God se Seun is, sê dan vir hierdie klippe om in brood te verander.” Jesus het egter dadelik ’n antwoord vir Satan gereed gehad: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. Nee, ’n mens leef van alles wat God sê.’” Daarna het die duiwel Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het vir sy engele gesê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Die duiwel was egter nog nie klaar met sy versoekings nie. Hy het Jesus na die top van ’n baie hoë berg gevat. Van daar af het hy Hom al die lande van die wêreld gewys met al hulle glans en rykdom. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune. Ek gee jou al hierdie lande op ’n skinkbord. Daar is egter net een voorwaarde: buig gou voor my en aanbid my as jou god.” Daarop het Jesus skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Na hierdie woorde het die duiwel Jesus uitgelos. Baie engele het toe na Jesus toe gekom. Hulle het Hom versorg met alles wat Hy nodig gehad het. Later, nadat Jesus uit die woestyn teruggekeer het, het Hy gehoor dat Johannes die Doper in die tronk gegooi is. Hy het toe teruggegaan Galilea toe. Jesus het egter besluit om nie langer in Nasaret te bly nie. Sy nuwe woonplek was Kapernaum. Dit is by die See van Galilea, in die omgewing van Sebulon en Naftali. So het die profetiese woorde van Jesaja waar geword toe hy gesê het: “Sebulon en Naftali, wat op pad na die see toe lê, daar oorkant die Jordaan, daar by julle in Galilea bly baie volke. Maar hulle almal leef in die donker. Nou het hulle egter ’n groot lig gesien! Hulle bly in ’n land waar die dood se skaduwee oor almal val, maar nou het die son oor hulle opgekom.” Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!” Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers, Simon en Andreas. (Simon is later Petrus genoem.) Hulle twee was vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê: “Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ’n nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld.” Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap. ’n Entjie verder het Jesus op nog twee broers afgekom, Johannes en Jakobus. Saam met hulle pa, Sebedeus, was hulle hard aan die werk om hulle visnette heel te maak. Jesus het by hulle gaan staan en ook vir hulle gesê om alles net so te los en sy volgelinge te word. Hulle het uit hulle boot geklim, hulle pa gegroet en agter Jesus aangestap. Nadat Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy oral in Galilea begin preek. In die sinagoges waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid, het Hy die mense geleer. Jesus het baie goeie nuus vir hulle gehad: Hy het vir hulle gesê dat God se splinternuwe wêreld aangebreek het. Om te wys dat Hy die waarheid praat, het Jesus elke siekte en kwaal waaraan hulle gely het, gesond gemaak. Jesus was gou-gou groot nuus. Kort voor lank het omtrent almal in die provinsie Sirië van Hom geweet omdat Hy sulke groot wonderwerke gedoen het. Mense het hulle siekes na Hom toe gebring. Duiwelbesetenes, verstandelik versteurdes en verlamdes - almal wat na Jesus toe gebring is, het Hy gesond gemaak. Dwarsdeur Palestina het mense van Jesus begin praat. Hulle het in ’n groot massa na Hom toe gestroom: uit Galilea, uit die gebied van die Tien Stede daar oos van die Jordaan, uit Jerusalem en selfs uit die gebied van Judea ver oorkant die Jordaan. Eendag, toe Jesus sien hoe baie mense na Hom toe kom, het Hy teen ’n berg opgeklim sodat Hy hulle kon leer. Sy volgelinge het saam met Hom teen die berg opgeklim. Nadat Hy gaan sit het, sê Hy vir hulle: “Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog. “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee. “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien. “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is. “Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.” “Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. “Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.” “Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit. “As jy dit sou waag om een van die voorskrifte in die wet te ignoreer, hoe onbenullig dit ook al is, is jy in groot moeilikheid by God. Jy is nog dieper in die moeilikheid as jy ander mense leer om hierdie voorskrifte te ignoreer. As jy sulke dinge doen, moet jy nie dink dat daar vir jou ’n plek in God se nuwe wêreld sal wees nie. Aan die ander kant: as jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde as jy te doen, sal jy definitief ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Maar nou moet julle baie mooi luister. Julle moenie die fout maak om die wet van God op dieselfde manier te probeer gehoorsaam as julle godsdienstige leiers nie. Nee, julle sal die wet nog baie strenger as hulle moet gehoorsaam as julle ’n plek wil hê in God se nuwe wêreld. Kom Ek gee julle ’n paar voorbeelde hoe julle dit moet doen.” “Julle onthou mos dat die godsdienstige leiers aan julle ouers gesê het: ‘’n Mens mag nie moord pleeg nie. Alle moordenaars moet hof toe gesleep word en die doodstraf kry.’ “Maar Ek sê vir julle dat iemand wat vir sy medemens kwaad is al klaar ’n moordenaar is. So iemand behoort in die hof aangekla te word. Iemand wat sy medemens uitskel vir ’n gek moet selfs voor die hooggeregshof gedaag word. En iemand wat so ver gaan om sy medemens ’n idioot te noem moet in die vuur van die hel gaan brand. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring. “Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?” “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’ “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.” “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word. “Ek sê egter vandag vir julle: julle moenie mense wat julle sleg behandel probeer terugkry nie. As iemand jou deur die gesig klap om jou te verneder moet jy dit maar vat. Moenie terugslaan nie. En as iemand jou hof toe wil vat oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik vir hom terug. Sluit ook sommer ’n groot geskenk daarby in om die vrede te bewaar. “As ’n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ’n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra. “Julle moet vrygewig wees. Deel julle besittings met mense wat julle vra om hulle te help. Moenie mense wegjaag as hulle iets by julle wil leen nie.” “Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’ “Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense se grond en oor slegte mense se grond. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ’n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende. “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op die aarde lief. As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle net soos Hy!” “Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry. “Moenie ’n ophef daarvan maak as jy ’n arm persoon help nie. Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ’n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie. “Wanneer jy mense help, mag niemand daarvan weet nie. Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie. Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.” “As jy bid, moet jy nie soos die skynheiliges maak nie. Hulle bid graag voor ander mense tydens godsdienstige byeenkomste sodat hulle moet hoor hoe mooi hulle bid. God skuld sulke mense niks meer nie. Hulle het mos klaar hulle prys hier op aarde gekry. “As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry. “Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan. “Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid: Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. Gee ons vandag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen. “As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.” “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie. Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.” “Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie. “Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het. “As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. “Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eens daaraan dink om God en die geldgod saam te probeer dien nie. Jy moet kies in wie se diens jy wil staan.” “Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere. Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel. Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe! “Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie. “As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’ As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry. “Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!” “Moenie so gou foutvind nie. As jy ander mense links en regs veroordeel, gaan God eendag presies dieselfde met jou doen. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir die groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal. “Wees versigtig wanneer julle tussen mense is wat geen respek vir God het nie. Hulle verstaan glad nie hoe groot en heilig Hy is nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Soos ’n trop varke sal hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Boonop gaan hulle julle ook nog beledig en vervolg.” “Julle moet nooit moeg word om te bid nie. Vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee. As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan. Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie? As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie. Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal net die beste dinge gee vir diegene wat Hom daarvoor vra.” “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra. “Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.” “Julle moet lig loop vir mense wat die goeie nuus verdraai. Hulle kom na julle toe met allerhande mooi godsdienstige praatjies, maar eintlik is hulle so gevaarlik soos ’n spul wolwe. Dit is maklik om hierdie mense uit te ken. Kyk maar net hoe hulle leef. As hulle heeltyd verkeerde dinge doen, wys dit dat hulle ’n spul leuenaars is. “’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra. “Daar is baie mense wat maak asof hulle My dien. Hulle noem My om elke hoek en draai ‘Here en Meester’. Daar wag egter ’n groot verrassing op hulle. My Vader gaan glad nie vir hulle plek hê in sy nuwe wêreld nie. Net daardie mense wat doen wat Hy vra, sal by Hom welkom wees. “Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’ “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’” “Ek het julle nou baie dinge oor God geleer. As julle my woorde ter harte neem en dit doen, tree julle reg op. Dan is julle lewens op ’n stewige fondament gebou. Wanneer die reëns en storms oor julle losbreek, sal julle lewenshuis nooit inmekaarstort nie. Want julle lewens is gebou op die Rots wat nooit kan padgee nie. Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie, is julle regtig dom. Dan is julle lewens op ’n hoop sand gebou. Wanneer die reëns en die storms oor julle losbreek, sal julle lewens uiteindelik inmekaarstort. Dan is die doderyk julle voorland.” Toe Jesus klaar was met sy lering op die berg, was die skare stom van verbasing. Hulle was vol lof oor sy aangrypende woorde. Jesus se woorde het heeltemal anders geklink as dié van hulle leermeesters. Hy het met groot gesag en oortuiging gepraat. Daarna is Jesus teen die heuwel af saam met ’n klomp mense wat om Hom saamgedrom het. Hulle wou meer van Hom hoor en leer. Terwyl hulle so stap, gebeur daar iets merkwaardigs. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!” Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond! “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.” Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy: “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!” “Ek kom dadelik,” sê Jesus. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.” Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.” Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het: “Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.” Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan. Toe hulle begin regmaak om te gaan staan ’n geleerde Israeliet nader, ’n kenner van die Joodse Bybel. Hy sê vir Jesus: “Ek sien U is ’n geleerde man. Mag ek asseblief saam met U gaan? Ek wil so graag meer van U leer. Dit maak nie saak waarheen U gaan nie, ek sal daar wees!” “Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?” Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.” Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.” Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!” “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil. Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?” Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard: “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?” Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus: “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” “Nou maar goed; sorg net dat julle hier wegkom!” sê Jesus. Die demone is daarna uit die mans uit, reguit in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, reguit die see in. Daar het die laaste een van hulle versuip. Die varkoppassers het so groot geskrik dat hulle in ’n stofstreep reguit dorp toe is. Daar het hulle die hele storie gaan vertel. Hulle het presies beskryf wat met die twee mans en met die varke gebeur het. Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg. Jesus en sy dissipels het maar weer in die boot geklim en is terug huis toe. Hulle was skaars daar of die mense het ’n verlamde man na Hom toe gebring. Daardie groepie mense was so vas oortuig dat Jesus die man kon help dat hulle hom persoonlik soontoe gedra het. Hulle het geweet Jesus kon iets vir hom doen. Toe Jesus die gelowige verwagting op hulle gesigte sien, sê Hy vir die verlamde: “Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te begin glimlag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad gaan wees oor jou sonde nie.” ’n Groepie geleerde Jode het egter alles staan en bekyk. Hulle was glad nie tevrede met wat hulle gehoor het nie. Dit het ’n paar van hulle onder mekaar laat mompel: “Hierdie man het geen respek vir God nie. Kyk net wat sê hy!” Jesus het goed geweet hoe hulle staan en skinder. Sonder om doekies om te draai sê Hy vir hulle: “Wat dink julle gaan julle bereik met al hierdie geskinder? Om te praat is maklik. Enigeen van julle kan mos sy mond oopmaak en sê: ‘Nou het jy nie meer sonde nie!’ of dalk: ‘Kom regop en stap sonder hulp hier weg.’ Dit is mos nie moeilik om so iets te sê nie. Maar om te laat gebeur wat jy sê, is heeltemal ’n ander saak. Julle weet baie goed dat iemand net sonde kan vergewe as hy regtig die mag het om dit te doen. Die Seun van die mens het daardie mag. Kyk mooi, Ek gaan dit nou doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het. “Staan op!” sê Jesus vir die lam man. “Vat jou matras en stap self huis toe.” Die lam man het voor almal opgestaan en huis toe gestap. Die mense kon hulle oë byna nie glo nie. Met groot respek het hulle gesê: “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik en groot God is. Kyk, Hy gee tot vir ’n mens mag om sulke ongelooflike dinge te doen.” Van daar af stap Jesus toe verder tot by ’n tolhuis. Dit is die plek waar reisigers se bagasie deur belastinggaarders (hulle is tollenaars genoem) deursoek is. Dan moes hulle op sekere goed belasting betaal. Hierdie mense was baie ongewild onder die Jode. Om die waarheid te sê, die Jode wou nie eens met hulle meng of selfs met hulle gesels nie. Matteus was so ’n tollenaar. Toe Jesus Matteus in die tolhuis sien sit, sê Hy vir hom: “Los al hierdie goed waarmee jy jou so besig hou en kom saam met My!” Matteus het nie een oomblik op hom laat wag nie. Hy het alles net so gelos en saam met Jesus verder gestap. Hulle is van daar af na Matteus se huis toe. Daar gekom, nooi Matteus ’n groot klomp van sy vriende vir aandete. Saam met Jesus en sy dissipels was daar natuurlik ook ’n hele klomp mense met wie die Jode nooit eens saam aan ’n tafel gesien wou wees nie. Daar was nog tollenaars en dan ook mense wat deur die Jode as sogenaamde sondaars uitgeskel is. Dit was mense wat nie die Joodse wet so streng gehou het as wat party gedink het hulle moes nie. Van die Jode wat die wet baie streng gehou het, het Jesus toe saam met al daardie mense aan die tafel sien sit. Dit het hulle laat wonder of Hy dan soos daardie mense wou word, want ’n mens eet mos net saam met goeie vriende. Hulle het by sy dissipels probeer uitvis: “Wat is Jesus besig om te doen? Wat leer hy julle? Waarom is hy so vriendelik met hierdie slegte mense dat hy selfs saam met hulle eet?” Hulle het die dissipels met vrae gepeper. Jesus hoor dit toe en vra: “Wat dink julle moet ’n dokter doen? Moet hy heeltyd die gesonde mense oppas? Of is sy plek by die siek mense vir wie hy iets kan beteken? Die antwoord op hierdie vraag sal julle help om God se woorde te begryp: ‘Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, Ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het.’ “Dink mooi hieroor na; dan sal julle verstaan wanneer Ek sê dat Ek nie hier is om mense wat klaar aan God gehoorsaam is weer na Hom toe te lei nie. Nee, dit is die mense wat nie van Hom weet nie wie se oë Ek graag vir God wil oopmaak.” Johannes se volgelinge het ook begin wonder waarom Jesus-hulle so anders optree wanneer dit by godsdienstige gebruike kom. Hulle vra toe vir Jesus: “Kyk hoe getrou hou ons en die ander godsdienstige Jode die vastye. Vir lang tye sonder ons ons vir God af en eet niks nie. Waarom steur jou dissipels hulle glad nie daaraan nie?” Jesus antwoord: “Wel, omdat nuwe dinge in hierdie wêreld aan die gebeur is. Op ’n troue staan mense mos nie en huil nie. Allesbehalwe! Terwyl die troue aan die gang is, hou almal mos fees. As die fees eers verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan en huil as hulle wil. “Laat Ek dit so verduidelik: as iemand ’n gat in ’n ou rok regmaak, lap sy dit nie met nuwe materiaal wat kwaai sal krimp nie. Met die eerste was sal daardie nuwe lap mos krimp en ’n yslike gat in die ou rok skeur. “Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie. “Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.” ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy. Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond. Daarna is Jesus-hulle saam met die vername man. By sy huis kry hulle mense wat vreeslik huil en rou. Dit het ’n groot lawaai afgegee. Jesus skreeu toe bo die geraas uit: “Gaan asseblief uit die huis uit. Die dogtertjie is nie regtig dood nie. Sy slaap net.” Toe die mense Hom dit hoor sê, was daar ’n beroering. Hulle kon hulle lag nie hou nie en het Hom begin koggel. Eers toe almal uit was, het Jesus by die huis ingegaan. Hy het die meisie se hand gevat en dit styf vasgehou. Die meisie het haar oë oopgemaak en opgestaan. Die nuus van wat daar gebeur het, het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei. Net toe Jesus by die huis uitkom, skreeu twee blindes hard vir Hom: “Seun van koning Dawid, help ons, asseblief! Ons het u hulp bitter nodig!” Jesus vra hulle: “Is julle heeltemal seker dat Ek julle kan help?” Vinnig antwoord hulle: “Natuurlik, Here.” Jesus vat toe aan hulle oë en sê: “Mag dít gebeur waarop julle so hoop.” En dit het gebeur - hulle kon weer sien. Jesus vra hulle toe baie mooi, maar tog ernstig: “Asseblief, moenie dat iemand agterkom wat hier gebeur het nie.” Maar hulle was kwalik by die deur uit of hulle het daaroor begin praat. Hulle kon dit net nie vir hulleself hou nie. Almal het later daarvan geweet. Net daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van ’n bose gees was. Die bose gees het gekeer dat hy ’n woord kon uitkry. Jesus het die bose gees verwilder en dadelik het die man begin praat. Die mense was skoon uit die veld geslaan. “Nog nooit het ons so iets in Israel gesien nie!” het hulle vir mekaar gesê. “Nee wat,” het die Fariseërs verskoning probeer soek, “hierdie man werk vir die duiwel. Daarom luister die bose geeste so vir hom!” Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder ’n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel. Vra God, die Boer wie se oes dit is, om nog ekstra arbeiders te stuur. Daarvoor moet julle ernstig bid!” Daarna roep Jesus sy twaalf dissipels eenkant toe. Hulle was: Simon (Petrus was sy ander naam); Andreas (hy was Simon se broer); die twee broers Jakobus en Johannes (Sebedeus was hulle pa); dan was daar ook Filippus, Bartolomeus en Tomas; Matteus (die een wat Jesus by die tolhuis ontmoet het) en Jakobus (Alfeus was sy pa); Taddeus; Simon (van Kana af); Judas Iskariot (hy het later teen Jesus gedraai en Hom verraai). Dit was die eerste groep mense wat in die ryp oeslande moes gaan werk. Jesus het vir hulle die nodige toerusting gegee, naamlik die mag om bose geeste te verjaag wat mense se lewe deurmekaarkrap, om siekes gesond te maak, en om mense te help wat op die een of ander manier deur die lewe gekneus is. Jesus het ook aan hulle spesifieke opdragte gegee: “Gaan eers na die Israeliete toe. Moenie allerhande afdraaipaadjies vat en eers onder die nie-Jode gaan werk nie. Los vir eers maar ook die Samaritane. “Die Israeliete is julle hoofdoel. Gaan samel eers daar die oes in. Soos herders moet julle hierdie skape gaan soek wat die spoor so erg byster geraak het. Hulle weet nie meer mooi waar God is nie. “Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het. “Doen onder hulle wat julle My die afgelope tyd sien doen het: gaan maak siek mense gesond; gaan gee aan dooies weer lewe; gaan maak melaatses gesond, en gaan help mense wat in die mag van demone is om daarvan ontslae te raak. “Doen al hierdie dinge sodat mense die teenwoordigheid en grootheid van God self persoonlik kan ervaar. En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg.” Jesus het verder met hulle gepraat en vertel hoe hulle te werk moes gaan: “Julle hoef nie ’n klomp geld saam te vat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak of allerhande spesiale reëlings vir die reis te tref nie. Immers, iemand wat werk, word tog betaal, al kry hy net kos om te eet vir al sy moeite. “Sê nou maar julle kom in ’n stad of dorpie aan, kyk dan of daar iemand is wat vir julle blyplek aanbied en by wie julle graag sal wil bly. Moenie rondval nie; bly daar totdat julle weer na die volgende dorpie toe moet gaan. “So moet julle dit doen: As julle in ’n huis ingaan, groet die mense vriendelik. Sê vir hulle God sal vir hulle goed wees. Hou dan hulle reaksie fyn dop. As hulle julle met dieselfde vriendelikheid teruggroet, weet julle die saak is reg. Laat die vrede van God oor die mense van daardie huis kom. Maar as hulle julle nie goed ontvang nie, moenie verder sukkel nie. Loop daar weg, julle met die vrede wat julle bring en alles daarmee saam. “Sê nou iemand verontagsaam julle as julle na hom toe gaan, sê nou hy wil nie luister as julle met hom praat nie, wat dan? Wel, moenie julleself probeer opdring of julle tyd mors nie. Los hom net daar. En as die mense van ’n hele dorp so ’n verkeerde houding het, los hulle ook net daar. Skud die kop, trek julle skouers op en gaan verder. Troos julle hieraan: wanneer God die dag kom om almal te oordeel, gaan hierdie mense besef dat hulle verkeerd was. Hulle gaan baie spyt wees, maar spyt kom altyd te laat. Saam met die ou stede soos Sodom en Gomorra wat so bekend was vir hulle sonde, gaan hierdie mense lelik onder God se oordeel deurloop. “Moenie dink alles sal altyd net goed gaan nie. Die gevare en probleme is groot en baie. Dit is byna so gevaarlik soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos lei waar dit wemel van die luiperds en leeus. Daarom moet julle ingesteldheid reg wees. Julle moet presies weet wat julle wil doen. Probeer ook om mense nie aanstoot te gee of kwaad te maak nie.” “Julle moet ook weet wat op julle wag. Die mense gaan vir julle baie probleme gee. Net omdat julle aan my kant is, sal hulle julle sommer in die tronk wil gooi. Hulle sal julle op die lelikste moontlike maniere voor almal slegsê. En dit is nie al nie. Hulle sal julle by die polisie gaan aankla asof julle boewe is. “Om twee redes hoef dit julle nie bang te maak nie. Wat hierdie mense nie weet nie, is dat hulle julle eintlik ’n guns doen: hulle trek al die aandag na julle toe. Almal, selfs mense wat nie eens Jode is nie, sal nuuskierig wees om te hoor wat julle sê. So sal hulle die goeie nuus hoor, of hulle nou wil of nie! “As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees. Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. “Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie. Dit sal tot gebeur dat ’n broer teen sy eie broer draai, of ’n pa teen sy kind. Glo dit of nie, sulke mense sal teen hulle eie bloedfamilie draai. Hulle sal selfs wil hê dat hulle doodgemaak moet word. Later sal die kinders selfs soos rebelle die mag in eie hande neem en sommer hulle eie pa en ma doodmaak.” “Julle wil seker weet waarom dit alles met julle moet gebeur. Wel, die antwoord is eenvoudig: omdat julle my vriende is. “Julle sal deur al hierdie mense gehaat word net omdat julle my kant gekies het. Maar moenie dat dit julle moedeloos maak nie. Julle het iets baie groters om na uit te sien. Die een wat deur al hierdie swaarkry heen steeds vas agter My bly staan, se plek is by God in sy nuwe wêreld bespreek. “Die kaptein van ’n span wen of verloor nie alleen nie; sy span wen of verloor saam met hom. Die kaptein se lot is almal se lot. Aanvaar daarom julle lot saam met My. Moenie ongelukkig wees as dieselfde dinge met julle gebeur wat met My ook gebeur nie. As hierdie mense die kaptein van die span vir ’n ‘duiwelskind’ uitskel, wat dink julle sal hulle die res van die span noem? “Al die probleme mag julle dus nie moed laat verloor nie. Die wêreld lê voor julle oop as sendingveld. As mense julle uit die een dorp wegjaag, is daar tien ander om na toe te gaan. Sowaar, daar is so baie werk dat julle nie eens behoorlik met die dorpe in Israel klaar sal kry voor die wederkoms nie. Julle kan nie net op een plek bly nie. “Moenie toelaat dat mense julle op allerhande maniere probeer bangmaak nie. Leuens kan nie die waarheid in ’n bottel toeskroef en dit weggooi nie. Die waarheid sal uitkom vir almal om te hoor. “Wat Ek vir julle gesê het toe ons alleen was, moet julle vir almal gaan vertel. Ons het oor baie dinge hier onder ons gepraat. Dit moet nie net hier tussen ons bly nie. Die hele wêreld moet dit hoor. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens uit eerbied die bangste wees, vir mense of vir God? Onthou altyd, mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan niks aan jou siel doen nie. God kan jou liggaam en jou siel in die hel gooi. Dit is nou regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie: God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie. “Wees dus getroos, maar ook gewaarsku. “Julle kan getroos wees as julle in die vyandige wêreld my boodskap bly verkondig, al gebeur wat ook al. Dan sal Ek baie goeie getuigskrifte oor julle vir my hemelse Vader gee. “Wees ook gewaarsku dat iemand wat nie oor My wil praat as die gevaar nader kom nie, nie moet verwag dat Ek allerhande mooi dinge oor hom vir die hemelse Vader sal vertel nie.” “Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is. “Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie. My boodskap maak ook vyande. Mense wat nie met My saamstem nie, sal met My - en met julle - wil baklei. Hulle sal selfs teen ons wil oorlog maak. Dit moet julle besef: die oomblik toe Ek gekom het, het die verhoudings tussen mense gespanne begin raak. Selfs die intiemste verhoudings het begin verkrummel, soos die verhouding tussen ’n seun en sy pa, tussen ’n dogter en haar ma, ’n bruid en haar skoonma. Ja, tot die gesin, waarin mense veronderstel is om mekaar die liefste te hê, sal nie gespaar bly nie. “Julle vra waarom. Wel, dit gaan eintlik oor wie of wat vir jou as Christen die belangrikste is. Luister, as jy voel dat jy liewer lojaal moet bly aan jou pa of ma as aan My, verdien jy My nie. Dieselfde geld vir jou seun of dogter of wie ook al. Ek moet altyd vir jou die belangrikste van almal wees. Ek moet die belangrikste in jou lewe wees. “Ja, alles gaan oor wie of wat vir jou die belangrikste is. Iemand wat sy lewe die moeite werd probeer maak deur heeltyd agter mense aan te hardloop, sal agterkom dat hy die ware lewe heeltemal misloop. Wie egter bereid is om aardse opofferings te maak omdat hy My bo alles liefhet, sal ontdek wat dit beteken om werklik te leef. “Ons almal werk mos in een span saam. As een lid van die span punte aanteken, is dit tog die hele span se punte. So is dit ook met ons. As iemand julle met oop arms aanvaar en julle vriend wil wees, is hy eintlik my vriend ook. En as hy my vriend is, is hy eintlik ook die vriend van my Vader wat My na julle toe gestuur het. As iemand bereid is om na die boodskapper van God te luister, sal hy mos God ook met hom hoor praat. Maak dus vriende met mense wat reg lewe, net soos julle. Julle wil tog graag doen wat God wil hê. God sal vir julle goed wees. “Luister mooi. Weet julle wie kan seker wees van sy plek by God in die hemel? Kom Ek sê vir julle: sê nou ’n vriend van My is dors. Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap nader met ’n beker koue water in sy hand. Hy gee dit vir my vriend. Saam met die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As die dors man vra: ‘Waarom doen jy dit?’ antwoord die ander man: ‘Omdat jy Jesus se vriend is.’ Wel, vir so iemand sal God ook sorg.” So het Jesus sy dissipels voorberei vir wat op hulle wag. Daarna is Jesus na die omliggende dorpies toe om die mense verder van God te vertel. Johannes was toe al klaar in die tronk. Selfs daar in die tronk was die mense aan die praat oor Jesus en sy preke. Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe: “Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.” Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is. “Gelukkig is hy wat nie begin twyfel of Ek regtig die Messias is nie.” Johannes se volgelinge is toe daar weg. Intussen het Jesus egter met die groep mense om Hom verder oor Johannes gesels. “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? ’n Opportunis wat niks beteken nie? Nee! Of dalk ’n ryk man in ’n duur pak klere? Ag nee, julle weet mos sulke mense bly nie in die woestyn nie, maar sit gemaklik in groot huise. Ek vra weer, wat het julle verwag om te sien? As julle ’n boodskapper van God verwag het, is julle heeltemal reg. Johannes is regtig so ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die belangrikste profeet wat daar ooit was. Die woorde van Maleagi is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’ “Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy. Van die dag dat Johannes begin preek het tot nou toe het die onkeerbare krag van God se nuwe wêreld al keer op keer oor die mense gespoel. Mense wat op en wakker is, gryp elke geleentheid aan om deel te word daarvan. As julle die moeite doen om die profete, asook die vyf boeke van Moses, goed te lees, sal julle agterkom dat dieselfde God wat deur julle Bybel praat, ook deur Johannes praat. Luister mooi: Johannes is die Elia vir wie julle wag om julle aan die Messias voor te stel. Hoor julle wat Ek sê? “Laat Ek aan ’n voorbeeld dink om die mense mee te vergelyk wat so hardkoppig weier om dit te glo. Wel, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel musiek, maar dit is julle wat nie wil dans nie. Ons sing liedjies, maar julle sit daar soos ’n klomp lyke asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie kinders is met niks en niemand tevrede nie. Kyk net wat doen hulle: Johannes het nie in die woestyn lekker kos geëet nie. En wat sê daardie mense toe? Hulle sê hy is van sy sinne beroof. “Daarna kom Ek toe onder skoot. Ek het mos lekker saam met my vriende geëet. Ook dit was nie goed nie. Oor My het hulle weer die volgende kwytgeraak: ‘Het julle gesien hoe baie eet hy? Skande, dat iemand hom darem so te buite kan gaan! En wat nog erger is, hy doen dit saam met daardie skurke wat ons wet so minag.’ “Ja-nee, al wat hierdie mense kan doen, is kritiseer. Maar hoe voel God daaroor? Wel, God kyk na die gevolge van wat iemand doen. Dan besluit Hy of dít wat daardie persoon doen, goed of sleg is.” Iets anders het Jesus ook gepla. In sekere dorpe het Hy baie gepreek en ook baie wonderlike dinge daar gedoen. Eintlik kon die mense nie oor sy wonderkrag twyfel nie. Ten spyte van dit alles het hulle bloot hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Dit het Jesus ontstel: “Gorasin, Betsaida, julle is soos mense wat met die volgende tree by ’n vernietigende afgrond gaan afstort en julle gee nie eens om nie. Weet julle, as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het, was hulle binne sekondes op hulle knieë voor My. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad. “Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref. “Mense van Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering! Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek. Julle onthou mos nog hoe daardie sondige stad Sodom deur God vernietig is? Wel, sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het wat Ek by julle gedoen het. Weet julle, hulle sou hulle lewe so vinnig verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie. Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie.” Jesus maak toe sy oë toe en begin bid. “Baie dankie, Vader, U wat oor die hemel en die aarde heers, dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles nie u boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde redenasies laat net hulle eie koppe draai. Uiteindelik begryp hulle minder van u boodskap as die kindertjies. Dankie, Vader, dat U besluit het om so duidelik en eenvoudig met ons te praat. Amen.” Na die gebed gesels Jesus toe verder met die mense: “My Vader het My gevra om al hierdie dinge op die aarde te kom doen. Hy het ook vir My alles gegee wat Ek nodig het om dit wel te kan doen. Ek en my Vader het geen geheime vir mekaar nie. Ons ken mekaar deur en deur. Niemand ken Ons soos Ons mekaar ken nie. Wil julle die Vader so leer ken? Ek kan julle aan Hom voorstel. “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. “Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.” Een sabbat stap Jesus en sy dissipels op ’n voetpaadjie deur ’n koringland. Sy dissipels begin toe honger voel en pluk koringare af en begin daaraan peusel. Die Fariseërs het hulle natuurlik soos valke dopgehou en was dadelik by: “Wat gaan hier aan? Kyk net hoe breek jou dissipels ons godsdienstige reëls. Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie!” Rustig antwoord Jesus hulle: “Het julle nog nie in julle Bybel gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Het julle al vergeet hoe hulle die reëls oortree en sommer die brood geëet het wat spesiaal vir God eenkant gesit is? Net God se priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Nog ’n vraag: Het julle ook nog nie in die Bybel gelees dat priesters op die sabbat in die tempel moet werk nie? Wat beteken dit? Ja, natuurlik, hulle is verplig om op die sabbat te werk. Maak dit nou sondaars van hulle? Tog sekerlik nie! En wat leer dit ons? Daar kom situasies waarin skynbaar belangrike wette ter wille van nog belangriker sake verslap kan word. “Maar hoe moet ons nou weet wanneer die een saak ‘belangriker’ as die ander is? Laat Ek vir julle sê. Hier voor julle staan Iemand wat belangriker is as alle godsdienstige reëls. As julle moet kies tussen gehoorsaamheid aan Hom en allerhande godsdienstige wette, kies Hom. Maar nou gaan julle hier tekere oor mense wat niks verkeerds doen nie, alles net omdat julle godsdienstige reëls dien en nie vir God nie. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.” Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?” Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie? Nou het Ek vir julle nog ’n vraag: Is ’n skaap naastenby soveel werd as ’n mens? Eintlik is dit tog ’n belaglike vraag. Daarom, as jy ’n skaap op die sabbat sal help, mag jy sekerlik ’n mens ook help. Dus, gebruik die sabbat om goed te wees vir ander mense.” Die Jode was stil. Hulle kon nie aan ’n enkele teenargument dink nie. Jesus sê toe vir die gebreklike man: “Maak jou hand oop en hou dit na My toe uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en dit was honderd persent reg. Die Fariseërs is daar weg, omgekrap omdat Jesus hulle hokgeslaan het. Daarom het hulle allerhande planne uitgewerk om van Hom ontslae te raak. Jesus het daarvan gehoor. Dit het Hom laat besluit om maar liewer ’n rukkie daar weg te bly. ’n Hele klomp mense het egter saam met Jesus gegaan. Die siekes onder hulle het Hy gesond gemaak. Hy het hulle egter baie mooi gevra om dit maar stil te hou en nie te veel oor Hom te praat nie. Dit het hulle herinner aan die woorde van die profeet Jesaja: “Dit is my Seun dié wat Ek uitgekies het, Ek het Hom baie lief. Hy maak My so bly. Hy sal die krag hê wat my Gees gee, met die finale oordeel sal Hy die regter oor alle mense wees. Hy sal nie raas en baklei nie. Hy sal nie op mense in die hoofstraat skel nie. Iemand wat seergekry het, sal Hy nie seerder maak nie. Hy sal ook nie iemand wat in die moeilikheid is, verder in die moeilikheid bring nie; inteendeel! Hy help mense om die geestelike wenpaal te haal. Hulle sal dan nie meer oor God se oordeel bekommerd hoef te wees nie. Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!” Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan. Dit het die omstanders baie beïndruk. In verwondering het hulle vir mekaar gevra: “Is Jesus nie dalk die Een wat weer soos koning Dawid oor ons gaan regeer nie?” Die Fariseërs was glad nie gelukkig toe hulle die mense dit hoor sê nie. “Nee wat, moenie julle laat kul nie,” het hulle probeer keer. “Hierdie man is baie goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste so na hom.” Hierdie skynheiliges kon egter niks vir Jesus wegsteek nie. Hy het geweet wat hulle dink. Daarom was sy teenargument gereed: “’n Weermag met soldate wat oor elke liewe ding onder mekaar baklei, sal nooit ’n oorlog kan wen nie. ’n Gesin waarin elkeen net heeltyd die ander wil teengaan, sal uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan alles vir hom eindig? Hy sal dit mos nooit doen nie! “Dit is nie al nie. Sê My, julle dryf ook mos demone uit. As julle sê Ek kan dit net doen omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wie se vriende maak dit julle? Toe, werk die antwoord uit. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle ook weet waarom Ek demone kan verjaag. Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal. “Kom ons gebruik ’n beeld. Hoe op aarde dink julle sal dit moontlik wees om sommer by die huis van ’n sterk, gesonde man in te stap en voor hom al sy goed te steel? Hy sal jou mos keer, tensy jy hom eers oorrompel en stewig vasbind. “Wat sê hierdie argumente vir julle? Dít, dat julle kan aflei aan wie se kant Ek staan. Nou staan julle voor die keuse: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan die kant van my vyand. “Daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk. “Julle kan liewer nog hierdie dinge van My sê, maar moenie dit van die Heilige Gees sê nie. Dan is julle regtig in groot moeilikheid by God. God sal julle dit nooit vergewe nie. “Julle weet mos dat sommige bome lekker eetbare vrugte dra, terwyl ander bome se vrugte nutteloos is omdat dit ’n hopelose boom is. ’n Mens weet of ’n boom goed of sleg is deur na sy vrugte te kyk. Net so is dit met mense. Moet julle dus nie dom hou nie. Eetbare vrugte kom nie van nuttelose bome af nie. “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’ As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.” Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.” “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.” Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar opdaag. Hulle wou iets vir Hom sê. Iemand het hulle opgemerk. “Jou ma en broers is hier buite. Hulle wil met jou praat.” Jesus se antwoord was: “Kan julle vir My sê wie my regte familie is? Wie is regtig my ma en wie is regtig my broers?” Hy wys toe na die mense wat Hom met oorgawe volg. “Sulke mense is my regte familie; hulle is vir My my ma, my broers en susters. Almal wat lewe soos my hemelse Vader van hulle verwag, is ’n lid van my familie. Hulle is regtig my broers, my susters, my ma.” Later die dag is Jesus af na die meer toe. Daar was so baie mense saam met Hom dat Hy in ’n bootjie moes klim sodat almal Hom kon sien. Die mense het op die wal bly staan. Jesus was lief om verhale in sy preke te gebruik om so sy boodskap vir die mense duideliker te maak. Met die bootjie as sy kansel het Hy begin preek: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooi het van die saadjies op die voetpad deur die land geval. Die voëls was dadelik by en gou was daar niks van hierdie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die groot rotse in die land geval. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie wortels maak in die vlak grond nie. Daarom kon die plantjies nie grootword nie. Die son het hulle gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Daardie plante het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek vir julle sê? “Asseblief, luister mooi!” Voor Jesus verder kon praat, vra sy getrouste volgelinge Hom: “U vertel altyd verhale wanneer U preek. Hoekom?” “As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan. “Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie. “En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan. “Daar het saad op die voetpad geval... Wel, baie mense luister na die boodskap van God se nuwe wêreld, maar dit sink nie in nie en hulle steur hulle nie daaraan nie. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Ander saad het weer tussen die doringbosse geval... Dit is soos iemand wat God se boodskap gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat sy beroep stel en al die ander dinge waarmee hy hom besig hou, ja, selfs die gejaag na geld, vir hom belangriker as sy geloof. Hy het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. So verdring al hierdie ander dinge die geloof eenvoudig uit sy lewe uit. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat hierdie persoon Jesus se boodskap so gretig aanvaar het nie. “Daar was ook goeie grond waarin die saad geval het... Dit is iemand wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur getref is. Hy het met oorgawe reg begin leef. In alles wat hy doen of sê, borrel sy Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan nie.” “Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’” Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.” Jesus het verder gepreek: “Luister nou na die verhaal oor die suurdeeg. God se nuwe wêreld werk net so. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit goed in ’n groot skottel deeg in. Na ’n ruk sal die suurdeeg elke stukkie deeg in daardie skottel laat rys.” So het Jesus die een verhaal na die ander vertel. Die profete het mos al voorspel: “Ek sal verhale gebruik as Ek preek. So sal Ek julle dinge vertel wat niemand nog ooit gehoor het nie.” Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.” “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel. “Julle weet mos dat allerhande soorte vis gewoonlik met nette in die meer gevang word. As die net vol vis is, sleep hulle dit wal toe. Dan soek hulle eers die vis uit. Die eetbare vis hou hulle, en hulle raak ontslae van die vis wat hulle nie wil hê nie. “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan. “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs. “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!” Jesus sê toe vir hulle: “Iemand wat geleerd is in die Joodse wet ken die ou boodskap. As hy My begin volg en verstaan, leer hy ook die nuutheid van God se boodskap ken. Hy is soos iemand wat ou en nuwe dinge in sy huis het en presies weet waar elkeen se plek is.” Jesus is van die meer af terug huis toe. Later is Hy na die byeenkoms van die Jode toe waar Hy lank met die mense oor God se nuwe wêreld gesels het. Hy het aan hulle verduidelik hoe hulle dit moet verstaan. Dit het die mense baie nuuskierig aan die praat gesit. “Waar kom hy aan al hierdie kennis en die krag om hierdie wonderlike dinge te doen?” het hulle gewonder. “Is sy pa nie maar ’n eenvoudige skrynwerker nie? By hom kon hy dit sekerlik nie geleer het nie! En die res van sy familie? By hulle ook nie. Ons ken hulle almal goed, van sy ma Maria af, sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas en sy susters ook, die hele klomp van hulle. “Hulle is maar ongeleerde mense net soos ons. Dit kon nie een van hulle gewees het wat hom dit geleer het nie. Nou wonder ons, waar kom hy aan alles?” Met alles wat Hy geweet en gedoen het, het Hy vir hulle soos ’n vreemdeling gevoel. Hulle kon Hom nie verstaan nie en het nie gevoel dat Hy deel van hulle was nie. Daarom het hulle hul skouers vir Hom opgetrek en gemaak asof hulle Hom nie raaksien nie. Jesus was gelate daaroor: “Nou ja, so gaan dit maar. Oral erken mense dat hulle by My die boodskap van God duidelik hoor. Maar hier by die huis hou my eie mense hulle snaaks en wil niks hoor en nie na rede luister nie.” Jesus het nie eens verder gesukkel nie. Omdat hulle Hom so sleg behandel het, het Hy nie juis veel wonderwerke daar gedoen nie. In daardie tyd het Herodes Antipas, die heerser van Galilea, te hore gekom dat Jesus baie gewild onder die mense is. Hy het vir die amptenare wat in sy paleis gewerk het, gesê: “Dit kan net Johannes die Doper wees wat uit die dood teruggekom het. Daarom doen hy nou al hierdie wonderwerke.” Johannes het natuurlik vroeër vir Herodes in die openbaar van owerspel beskuldig omdat hy sy broer, Filippus, se vrou afgevat het. Haar naam was Herodias. Johannes het reguit vir Herodes gesê: “Dit is verkeerd dat jy haar vir jou vat!” Herodes was so kwaad hieroor dat hy Johannes in die tronk gegooi het. Hy wou Johannes daar en dan doodmaak. Maar hy het besef dat dit tot ’n opstand onder die mense kon lei omdat hulle Johannes as ’n spesiale boodskapper van God beskou het. ’n Rukkie later het Herodias haar verjaardagpartytjie gehou. Haar dogter het vir al die gaste gedans. Herodes was baie beïndruk met haar. Hy het haar nader geroep en plegtig voor almal beloof om haar enigiets te gee wat sy vra. Op aandrang van haar ma sê sy toe vir Herodes: “Ek wil graag Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê.” Hierdie versoek het Herodes heeltemal onkant betrap. Hy was baie omgekrap hieroor, maar hy het besef dat hy sy woord moes hou. Sy eer was op die spel voor al die gaste. Daarom het hy sy soldate gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap. Hulle het daarna sy kop op ’n skinkbord vir die meisie gebring. Sy het dit na haar ma toe gevat. Later het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en gaan begrawe. Hulle het vir Jesus gaan vertel wat gebeur het. Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Petrus roep toe: “Here, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te stap.” “Waarvoor wag jy? Kom!” het Jesus geantwoord. Petrus het dadelik uitgeklim en op die water na Hom toe begin stap. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het sy moed hom begeef. Hy het begin sink. Hy roep toe benoud: “Here, red my!” Jesus het sy hand vinnig uitgesteek en hom uit die water opgetrek. “Hoekom is jou geloof so klein? Hoekom hou jy nie aan glo nie?” het Hy verwytend vir Petrus gevra. Hulle het daarna in die skuit geklim en die wind het skielik bedaar. Die dissipels wat in die boot was, het in eerbied voor Jesus neergeval. Hulle het Hom aanbid en gesê: “U is regtig die Seun van God!” Daarna het hulle na die landstreek van Gennesaret oorgevaar. Daar aangekom, het die inwoners Jesus herken. Hulle het haastig vir almal in die omgewing laat weet, sodat die siekes na Hom toe begin stroom het. So baie mense het later opgedaag dat hulle Hom gevra het of hulle net maar aan sy klere se soom kon raak. Hy het ja gesê. Almal wat aan sy soom geraak het, het gesond geword. Kort daarna het ’n groepie Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem hulle opwagting gemaak. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom steur jou dissipels hulle nie aan die godsdienstige tradisies van ons voorvaders nie? Hulle was nie hulle hande voor ete nie.” Jesus het dadelik gereageer: “En hoekom doen julle nie wat God van julle vra nie? Julle leef ver van Hom af met julle godsdienstige tradisies en al! “Kom Ek gee julle ’n voorbeeld,” het Hy bygevoeg. “Julle weet mos dat God in die Bybel sê: ‘Jy moet jou pa en ma respekteer.’ Hy sê ook: ‘Iemand wat lelike dinge oor sy pa of ma sê, moet doodgemaak word.’ Maar julle wikkel julle maklik uit hierdie voorskrif uit deur te sê: ek het al my geld aan die tempel bemaak. Net ek mag nou daarvan gebruik; niemand anders nie. Daarom kan ek nie langer vir my pa en ma sorg nie. “Weet julle, as julle julle so gou van julle verpligting teenoor julle ouers losmaak, het julle geen respek vir hulle nie. Dan stel julle julle eie godsdienstige tradisies bo God se Woord. Daardeur beroof julle God se Woord van sy krag. Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het: ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’” Daarna het Jesus die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister nou goed na wat Ek sê: niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.” ’n Rukkie later kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Weet U hoe kwaad die Fariseërs vir U was oor wat U vir hulle gesê het?” Jesus antwoord toe: “My hemelse Vader sal elkeen wat nie in Hom glo nie in die hel gooi. Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.” Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.” Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê? Verstaan julle nie dat alle kos wat ’n mens eet, in jou maag beland en later uit jou liggaam uitgeskei word nie? Maar dit wat jy sê, kom uit jou hart. Dáár ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel en te lieg en lelike dinge teen God te sê. Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie. Dit gaan vir Hom glad nie daaroor of jy jou hande voor ete was of nie. Sulke dinge kan ’n mens nie onrein maak nie.” Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.” Jesus het egter gemaak of Hy haar nie hoor nie. Maar sy het nie moed verloor nie. Sy het agter Hom bly aanloop en om genade gepleit. Die dissipels was later baie omgekrap oor hierdie vrou. Hulle sê toe vir Jesus: “Jaag haar weg. Sy maak ons gek met haar geskreeu.” Jesus sê vir die vrou: “Ek het net een taak. Dit is om die mense in Israel wat ver van God af lewe na Hom toe terug te bring.” Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!” Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.” “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!” “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond. Na hierdie episode het Jesus na die gebied by die See van Galilea teruggekeer. Daar het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim en gaan sit. ’n Groot aantal mense het daar na Hom toe gekom. Hulle het baie siekes saamgebring: verlamdes, blindes, doofstom mense, gebreklikes en sommer nog ’n menigte. Hierdie siek mense is almal gesond gemaak. Doofstommes het begin praat; gebreklikes se ledemate was weer normaal; verlamdes het begin rondbeweeg, en die blindes kon sien. Almal wat hierdie groot wonderwerk gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het God hardop geprys. Terwyl die skare nog in vervoering was oor wat om hulle gebeur het, het Jesus sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir hierdie mense. Hulle is al ’n volle drie dae hier by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger huis toe stuur nie. Dalk maak hulle dit nie op die lang pad terug nie.” Die dissipels vra verbaas vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg kos kry vir so ’n menigte?” “Hoeveel brood het julle by julle?” vra Hy. “Sewe brode en ’n paar vissies,” antwoord hulle. Jesus laat toe al die mense sit. Daarna neem Hy die sewe brode en die vissies in sy hand. Na ’n dankgebed begin Hy om dit te breek en aan sy dissipels te gee. Hulle het dit weer aan die skare uitgedeel. Daar was uiteindelik oorgenoeg kos vir almal. Die mense het geëet totdat hulle versadig was. Na die tyd is daar sewe mandjies met oorskietkos opgetel. Net die mans by hierdie ete was sowat 4 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus die mense na hulle huise toe teruggestuur. Hy het in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek. ’n Groepie Fariseërs en Sadduseërs het op die toneel verskyn om Jesus in die openbaar te probeer verneder. Hulle het Hom voor die mense uitgedaag om ’n wonderwerk te doen. Jesus het egter vir hulle gesê: “Julle weet mos goed om die weer te voorspel. In die aand sê julle: ‘Môre gaan dit mooi weer wees. Kyk net hoe rooi is die lug.’ En wanneer die lug toegetrek is, sê julle: ‘Vandag gaan dit onweer wees.’ As julle so goed is met die weer, hoekom kan julle dan nie die tyd reg lees nie? Kan julle nie sien wie nou by julle is nie? “Julle spul sondaars is op soek na tekens. Julle wil ’n bewys hê dat God deur My werk. Weet julle, dit is net sy vyande wat allerhande tekens wil hê. Die enigste ‘teken’ wat Ek bereid is om vir julle te gee, is dié van Jona wat drie dae lank in die maag van ’n vis was. My lewe sal ook vorentoe soos dié van Jona verloop.” Jesus het toe omgedraai en weggestap. ’n Rukkie later, toe hulle onderweg was na die oorkant van die See van Galilea, het die dissipels agtergekom dat hulle vergeet het om brood te koop. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet baie versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Die dissipels het saggies vir mekaar gesê dat Hy seker maar verwys na die feit dat hulle vergeet het om brood te koop. Jesus het egter goed geweet wat hulle onder mekaar sê. “Hoekom is julle bekommerd omdat julle vergeet het om brood te koop?” vra Hy. “Julle is regtig kleingelowig. Vergeet julle so gou? Onthou julle dan nie meer hoeveel mandjies oorskietkos julle opgetel het nadat Ek vir 5 000 mense met vyf brode kos gegee het nie? En wat van die ander keer toe Ek vir 4 000 mense met sewe brode kos gegee het? Toe het daar ook ’n hele klomp mandjies vol kos oorgebly. Hoe kan julle dan nog dink dat Ek oor kos gepraat het toe Ek gesê het dat julle moet lig loop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs?” Toe begryp die dissipels dat Jesus nie met hulle gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie. Hulle het besef dat Hy hulle wou waarsku teen die verkeerde leringe van die Fariseërs en die Sadduseërs. Dit is soos suurdeeg wat ’n mens se hele lewe deurmekaarkrap. Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?” Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.” Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.” Nadat Jesus al hierdie dinge vir die dissipels gesê het, het Hy hulle verbied om vir ander mense te sê dat Hy die Messias, God se Gestuurde, is. Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.” Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.” Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg? “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien. “Ek het egter goeie nuus vir julle: party van julle wat nou na My luister, sal beslis nie doodgaan voordat julle met julle eie oë gesien het hoe Ek op die toneel verskyn nie. Julle sal sien hoe God se nuwe wêreld aanbreek.” Ses dae later het drie dissipels ’n voorsmaak gekry van God se nuwe wêreld. Dit het gebeur toe Petrus, Johannes en Jakobus alleen saam met Jesus op ’n hoë berg was. Sy voorkoms het skielik voor hulle oë verander. Sy gesig het soos die son begin gloei. En sy klere het helder wit geskyn. Moses en Elia, die twee groot profetiese figure uit Israel se geskiedenis, het hulle opwagting gemaak en met Jesus begin praat oor sy taak wat voorgelê het. Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie. Hy bied toe maar aan om drie spesiale tente op te rig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Terwyl hy nog so staan en praat, het ’n helder wolk hulle skielik omring. Toe sê daar ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Wat Hy doen, verskaf My groot vreugde. Luister na wat Hy vir julle sê!” Toe die drie dissipels hierdie stem hoor, het hulle hulle morsdood geskrik. Hulle het plat op hulle gesigte neergeval. Jesus het egter na hulle toe gestap en hulle aangeraak. “Staan maar op. Julle hoef nie bang te wees nie,” het Hy vir hulle gesê. Toe hulle hul oë oopmaak, sien hulle slegs vir Jesus by hulle staan. Daarna, terwyl hulle van die berg afklim, sê Jesus vir die dissipels: “Julle mag vir niemand vertel wat julle op die berg gesien het nie. Eers wanneer Ek, die Seun van die mens, uit die dood opgestaan het, kan julle vir ander mense hiervan vertel.” Hulle vra toe vir Hom: “Hoekom sê al die skrifkenners dan dat Elia eers aarde toe moet kom voordat die Messias sy opwagting maak?” “Dit is so,” het Jesus geantwoord. “Elia kom om alles gereed te maak. Maar weet julle, Elia het eintlik al klaar gekom. Tog het die mense hom nie herken nie. Daarom het hulle hom doodgemaak. Die Seun van die mens gaan binnekort net so behandel word.” Toe snap die dissipels dat Jesus besig was om oor Johannes die Doper te praat. Hy was die Elia wat op die toneel verskyn het om die Messias se koms aan te kondig. Toe Jesus en die drie dissipels onder kom, het baie mense vir Hom gestaan en wag. ’n Man het vinnig tussen die skare deurgevleg en voor Hom neergeval. “Here, help my seun, asseblief,” het hy gesmeek. “Hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan val hy op die grond neer. Hy het al ’n paar keer in ’n vuur of in die water beland wanneer dit gebeur. As dit so aanhou, is hy binnekort dood. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.” Jesus draai om na sy dissipels toe en sê vir hulle: “Julle ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle sal glo? Dit kan nie langer so aangaan nie! Kry julle lewens in orde. My geduld is nou besig om op te raak.” Jesus sê toe vir die man: “Bring gou die seun hier.” Toe die seun by Jesus kom, het Hy die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Die seun was dadelik gesond. Kort daarna, toe hulle alleen was, het die dissipels halfverleë na Jesus toe gekom. “Hoekom kon ons nie daardie duiwel uit die seun verdryf nie?” het hulle Hom gevra. “Omdat julle geloof te klein is,” het Hy reguit geantwoord. “Julle maak nie erns met God nie. Weet julle, as julle geloof in Hom maar net so groot soos ’n klein mosterdsaadjie is, sal julle onmoontlike dinge regkry. Dan sal julle enige struikelblok in julle lewe kan oorkom, hoe groot dit ook al is. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘Skuif uit die pad uit!’ dan sal dit gebeur. Niks is onmoontlik vir mense wat op God vertrou nie.” *** Kort daarna het Jesus se ander volgelinge in Galilea by Hom en sy dissipels aangesluit. Hy sê toe vir hulle: “Weet julle, Ek gaan binnekort in die hande van wrede mense val. Hulle gaan My vermoor. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is sterker as die dood. Op die derde dag sal Ek weer deur God lewendig gemaak word.” Hierdie nuus was ’n groot skok vir hulle. Kort daarna het amptenare wat elke jaar die tempelbelasting insamel by Petrus se huis in Kapernaum opgedaag. “Betaal daardie leermeester van julle ook sy tempelbelasting?” het hulle vir Petrus gevra. “Natuurlik!” het Petrus geantwoord. Toe Petrus daarna in die huis kom, het Jesus hom ingewag met ’n moeilike vraag: “Simon, sê My, van wie vorder ’n koning belasting in: van sy eie kinders, of van al sy onderdane?” “Van sy onderdane,” het Petrus dadelik geantwoord. “’n Koning se eie kinders betaal tog nie belasting aan hulle pa nie.” “Ja, jy’s reg,” sê Jesus. “’n Koning laat tog nie sy kinders belasting betaal nie. Wel, dan geld dieselfde mos van My. Ek is God se Seun. Daarom hoef Ek nie tempelbelasting te betaal nie. Maar wag, netnou sê die mense lelike dinge oor My. Daarom sal Ek dit liewer maar betaal. “Petrus, gaan gou see toe en gooi jou lyn in. In die eerste vis wat jy vang se bek sal daar genoeg geld wees om ons al twee se tempelbelasting te betaal. Vat dit namens jou en My daar na die belastinggaarders toe.” Op ’n dag het die dissipels vir Jesus kom vra: “Sê vir ons: Wie is die heel belangrikste persoon in God se wêreld? Wie maak vir Hom die meeste van almal saak?” Toe doen Jesus ’n vreemde ding. Hy roep een van die kindertjies wat daar rondspeel nader. Hy laat dié toe tussen hulle staan en sê: “Ek gaan julle nou een van die belangrikste lesse van julle hele lewe leer. Kyk, julle moet verander en weer soos hierdie kindertjies word, anders sal julle nooit die binnekant van my Vader se nuwe wêreld sien nie. Kindertjies is nederig. Hulle dink nie te veel van hulleself nie. Hulle het respek vir ander. Julle moet ook so leef. Julle moet julle eie belange tweede stel en ander mense respekteer, dan is julle die belangrikste in God se nuwe wêreld. “Elkeen wat een van hierdie kindertjies soos ’n vriend ontvang en hom goed behandel, ontvang My ook as vriend en behandel My goed. “Maar elkeen wat veroorsaak dat een van hierdie ou kleintjies se geloof ’n knou kry, gaan in groot moeilikheid wees. Wanneer iemand daarvoor verantwoordelik is dat my kleintjies die spoor byster raak, is dit eintlik vir hulle beter in die middel van die see met ’n reuserots om hulle nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf. “Dis nou maar een maal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink. God se oordeel wag op hulle. “Natuurlik is dit nie maklik om te glo nie. Dit is net so swaar soos om een van jou eie ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou hand of jou voet afkap en dit in die asblik gooi as jy agterkom dat jy dinge daarmee doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer sonder hande en voete. Leef soos iemand wat lam of kruppel is, al is dit verskriklik swaar. Anders beland jy binnekort in die hel. En wat gaan jy daar met twee gesonde hande en voete maak? “Pluk jou oog uit en gooi dit dadelik weg as jy agterkom dat jy op die verkeerde manier daarmee kyk. Leef eerder met een oog, al is dit baie swaar. Sondige kyke gaan jou in elk geval net in die hel laat beland. En wat help dit jou om in die hel baie goed te kan sien?” “Moenie neersien op die ou kleintjies wat in My glo nie. Hulle is so kosbaar dat selfs die heel belangrikste engele daar in die hemel by my Vader se troon gedurig oor hulle praat. *** “Stel julle die volgende prentjie voor: ’n boer het 100 skape. Een raak skielik weg. Wat dink julle sal die boer doen? Hy sal die 99 skape net daar laat staan en begin soek na die skaap wat weggeraak het. Wanneer hy hom uiteindelik kry, is hy sommer baie bly. Ja, hy is nog blyer oor die skaap wat hy gekry het as oor die 99 wat nie weggeraak het nie. “Weet julle, my Vader maak presies net soos hierdie boer. Hy hou aan met soek na elkeen van sy ou kleintjies wat oor ’n sonde neergeslaan het totdat Hy hulle kry. Dan gaan tel Hy hulle op. Omdat hulle vir Hom kosbaar is, wil Hy nie hê dat een van hulle verlore gaan nie.” “As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat. As hy na jou luister, was dit alles die moeite werd. Dan het jy hom teruggekry op God se pad. As dit nie help nie, moet jy nog een of twee persone saamvat en weer gaan probeer. Die teenwoordigheid van twee of drie getuies kan hom dalk tot sy sinne ruk. Wanneer hy selfs nie na hulle wil luister nie, moet jy maar vir al die ander gelowiges gaan vertel wat gebeur het. As dit uiteindelik ook nie help nie, moet julle hierdie persoon as ’n ongelowige en ’n sondaar beskou. So iemand hoort dan nie meer in die kerk nie. “Ek gee aan julle groot gesag: ’n ja van julle hier op aarde is ’n ja in die hemel. En ’n nee van julle is ’n nee in die hemel. Wat Ek bedoel, is dit: as julle iemand wat tot bekering gekom het as ’n broer of ’n suster binne die kerk ontvang, geld dit ook in die hemel. En as julle iemand wat in sonde leef, verbied om langer aan die kerk te behoort geld dit ook in die hemel. “Ek het nog goeie nuus vir julle. As twee van julle saamstem oor enige saak wat swaar op julle hart lê en julle gaan praat met my hemelse Vader daaroor, sal julle gebed verhoor word. Julle sal kry wat julle gevra het. Onthou: Ek is altyd by julle, selfs daar waar net twee of drie van julle in my Naam bymekaarkom om te bid.” Petrus vra toe vir Jesus: “Here, sê my, hoeveel keer moet ek iemand vergewe wat verkeerd teenoor my opgetree het? Tot sewe maal?” “Nee, nie net sewe keer nie,” het Jesus geantwoord. “Sewentig maal sewe keer. Moenie tel hoeveel keer jy ander mense vergewe nie. Vergifnis hou net aan en aan.” Toe vertel Jesus vir hulle ’n verhaal om te verduidelik wat Hy bedoel: “In God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n koning wat op ’n dag besluit het om sy boeke na te gaan en te kyk wie van sy onderdane hom geld skuld. Toe hy begin sommetjies maak, kom hy agter dat een van sy amptenare hom twintig miljoen rand skuld. Hy was baie geskok hieroor en het die man dadelik ontbied. Toe die man opdaag, het hy vir die koning gesê dat hy bankrot is. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Die koning was woedend daaroor. ‘Verkoop hom en sy vrou en kinders daar op die mark as slawe. Verkoop ook al hulle besittings. So kry ek darem ’n paar rand terug.’ “Die vreesbevange amptenaar het toe op sy knieë voor die koning neergeval en om genade begin smeek. ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal alles terugbetaal wat ek aan u skuld.’ “Die koning se hart het sag geword toe hy die amptenaar so sien smeek. Toe besluit hy daar en dan om al sy skuld af te skryf. “Toe die amptenaar by die paleis uitstap, loop hy ’n ander amptenaar raak wat hom 9 000 rand skuld. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal nou dadelik wat jy my skuld!’ “Die man het op sy knieë neergeval en gepleit: ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal binnekort die geld terugbetaal wat ek jou skuld.’ “Die amptenaar was egter nie daarvoor te vinde nie. Hy het die man daar en dan in die tronk laat gooi. “Ander amptenare het gesien wat gebeur en was baie ontsteld daaroor. Hulle het toe vir die koning daarvan gaan vertel. “Die koning het die amptenaar toe dadelik ontbied en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Ek het so pas jou skuld van twintig miljoen rand afgeskryf omdat jy my om genade gesmeek het. Moes dit jou nie beweeg het om dieselfde vir daardie ander amptenaar te doen toe hy op sy knieë voor jou kom staan het nie?’ Die koning was so kwaad dat hy die amptenaar daar en dan tronk toe gestuur het waar hy gemartel is. “My Vader in die hemel sal net soos hierdie koning met julle maak as julle weier om mekaar van harte te vergewe.” Jesus het daarna uit Galilea vertrek. Hy is na Judea toe, daar oorkant die Jordaan. Oudergewoonte het ’n groot skare mense na Hom toe gestroom. Jesus het al die siekes onder hulle gesond gemaak. ’n Klomp Fariseërs het ook daar opgedaag. Hulle wou Jesus verneder met ’n strikvraag. “Kom ons hoor ’n bietjie wat jy dink. Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?” Jesus het dadelik ’n teenvraag vir hulle gereed gehad: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Weet julle nie daar staan geskryf dat God heel aan die begin man en vrou gemaak het om lewenslank by mekaar te bly nie? Daarom het God gesê: ‘Die dag wanneer ’n man trou, sal hy nie meer by sy ouers bly nie. Nee, hy en sy vrou sal dan op hulle eie gaan bly. Hulle sal dan liggaamlik en geestelik een word.’ “In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.” Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.” “Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë. “Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.” Na die tyd het Jesus se dissipels eenkant vir Hom kom sê: “Ons het gestaan en luister na wat U vir die Fariseërs oor die huwelik gesê het. Maar, Here, g’n mens kan dit wat U sê, nakom nie. Dis heeltemal te moeilik. Is dit dan nie maar beter om nie te trou nie?” “Ja, Ek weet dis nie maklik om te doen wat Ek vir julle sê nie,” het Jesus geantwoord. “Maar wanneer God met sy goedheid in julle lewens aan die werk is, kan julle doen wat Ek sê. Tog is dit nie vir almal moontlik om te trou nie. Daar is byvoorbeeld mense wat nie in staat is om te trou nie omdat hulle weens aangebore liggaamlike gebreke nie hulle normale seksuele funksies kan vervul nie. Daar is ook mans wat ontman is en nie in staat is om kinders te hê nie. En dan is daar ook mense wat self besluit het dat hulle nie wil trou nie sodat hulle al hulle tyd en energie aan God se diens kan wy. As julle egter kans sien om my voorskrifte oor die huwelik uit te voer, trou dan!” Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.” Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek. Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.” “Watter voorskrifte?” het die man gevra. “Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie; jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.” “Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.” Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap. Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.” Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?” Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.” Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Nou moet U reguit vir ons sê wat ons dissipels se kans is om daar in te kom. Kyk, ons het al ons besittings weggegee en u volgelinge geword.” “Ek het baie goeie nuus vir julle,” antwoord Jesus. “Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal Ek as die Seun van die mens daar as Koning regeer. Ek self sal sorg dat julle die heel beste plekke daar kry. Julle sal soos konings op twaalf trone gaan sit en oor almal in Israel oordeel. “Maar Ek het ook goeie nuus vir al die ander mense wat baie dinge moes opoffer om my volgelinge te word. Party moes ’n huis of ’n familielid of ’n goeie werk prysgee. Hulle sal 100 maal daarvoor vergoed word, sommer nou al. Hulle sal elke dag God se goedheid ervaar. En hulle sal definitief ook ’n plek in my Vader se nuwe wêreld kry. “Mense wat nou hier op aarde baie belangrik is, sal glad nie ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat egter nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar belangrik wees.” Daarna vertel Jesus vir hulle ’n verhaal: “Weet julle, in God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n boer wat vroeg een oggend by die markplein ’n paar werklose mense gaan huur het om daardie dag vir hom op sy plaas te kom werk. Hy kom toe met hulle ooreen om hulle 100 rand vir die dag se werk te betaal. “So teen nege-uur die oggend het die boer weer ’n draai daar by die markplein gemaak. Hy sien toe nog ’n paar werkloses daar rondstaan. Dadelik het hy hulle ook gehuur om op sy plaas te kom werk. ‘Ek betaal julle 100 rand vir die dag,’ het hy vir hulle gesê. “Teen twaalfuur en ook teen drie-uur was die boer weer by die markplein. Elke keer het hy nog werkers gehuur wat daar rondgestaan het. Laatmiddag, so teen vyfuur se kant, het hy vir oulaas by die mark ’n draai gemaak. Hy tref toe weer ’n klompie werkloses daar aan en vra vir hulle: ‘Vir wat staan julle die hele dag hier rond sonder om iets te doen?’ “‘Wel, niemand het vir ons werk nie,’ antwoord hulle. “‘Kom werk dan daar by my in my wingerd op die plaas,’ sê die boer toe. “’n Rukkie later, toe dit begin donker word, sê die boer vir sy voorman: ‘Kry gou al die werkers bymekaar en betaal hulle. Begin by diegene wat ek laaste in diens geneem het en eindig by dié wat van vroeg af werk.’ “Die werkers wat eers teen vyfuur begin werk het, het toe elkeen 100 rand gekry, die geld wat die boer vir ’n volle dag se werk betaal. Die ander wat heel eerste begin werk het, het toe by hulleself gedink dat hulle meer as dit betaal sou word. Maar hulle het ook presies dieselfde bedrag gekry: 100 rand. Hulle was baie kwaad daaroor. Hulle het hardop begin protesteer en vir die boer gaan sê: ‘Kyk, hierdie laaste spul werkers het net ’n uur lank gewerk. En nou word hulle dieselfde as ons betaal. Dis mos nie regverdig nie. Ons moes ’n hele dag in die warm son sweet, nie hulle nie!’ “Die boer sê toe vir die werkers se segsman: ‘My vriend, ek was glad nie onbillik teenoor julle nie. Ek het mos met julle ooreengekom om julle 100 rand te betaal, nie waar nie? Vat julle geld en gaan huis toe. Ek het besluit dat ek vir die arbeiders wat laaste kom werk het dieselfde as vir julle wil betaal. Dit is mos my geld. Ek kan daarmee maak wat ek wil. Hoekom is julle dan kwaad vir my omdat ek daarmee goeddoen?’” In God se wêreld keer die rolle heeltemal om. Daar sal mense wat nou onbelangrik is, die heel belangrikste wees, terwyl almal wat nou belangrik is, glad nie sal tel nie. Op pad na Jerusalem het Jesus sy dissipels op ’n dag eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Soos julle weet, gaan ons nou Jerusalem toe. Daar gaan iets verskrikliks met My gebeur. Die godsdienstige leiers gaan My vang en My ter dood veroordeel. Dan sal hulle My oorgee aan die Romeine. Hierdie spul sal My daar voor almal spot en beledig en My slaan. Uiteindelik sal hulle My kruisig. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Kort daarna het die ma van Johannes en Jakobus saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy kniel toe voor Hom en sê dat sy vir Hom iets belangriks wil vra. “Wat het jy op die hart?” vra Jesus haar. “Belowe my asseblief dat wanneer U as Koning in God se nuwe wêreld heers, U vir my seuns die twee heel beste plekke daar sal gee. Laat hulle sommer reg langs U sit: een aan u linkerkant en een aan u regterkant.” “Jy en jou seuns weet nie wat julle vra nie,” antwoord Jesus. “Weet julle, Ek is op pad na my dood toe. Dit is soos ’n bitter beker wat Ek moet leegdrink. Sien julle daarvoor kans? Is julle ook bereid om ’n beker vol pyn en lyding leeg te drink?” “Waarom nie?” het hulle geesdriftig geantwoord. “Ja, eintlik is julle reg! Julle sal nog baie swaarkry, net soos Ek. Julle sal ook een van die dae julle beker van lyding moet leegdrink. Maar wat julle versoek oor die beste plekke in die hemel betref: Ek besluit nie daaroor nie. My Vader self sal besluit wie dit kry.” Toe die ander tien dissipels agterkom wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het, was hulle op die plek kwaad. Hulle het gedink dat die twee beste plekke nou voor hulle neus opgeraap is. Jesus wou egter nie hê dat hulle onder mekaar aan die stry moes raak nie. Daarom roep Hy hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet mos hoe dit in die wêreld gaan: politici en mense in magsposisies speel heeltyd baas oor al hulle onderdane. Hulle misbruik hulle gesag en doen net wat hulle wil. Julle mag egter nooit so maak nie. As een van julle in God se oë belangrik wil wees, moet hy bereid wees om ander te dien. “Is julle op soek na ’n leiersposisie in die kerk? Wel, word dan ander gelowiges se slaaf. ’n Slaaf het net een doel voor oë, en dit is om sy eienaar van vroeg tot laat tevrede te stel. Kyk na My: Ek is die Seun van die mens. Tog het Ek nie op ’n troon kom sit sodat mense My van kop tot tone kan bedien nie. Nee, Ek het gekom om te dien. Ek gaan binnekort selfs my lewe ter wille van julle almal opoffer. My lewe sal die losprys wees wat baie mense uit die mag van die dood loskoop.” Later, toe hulle uit Jerigo stap, het ’n groot skare mense agter Jesus aangekom. Hulle het by twee blindes verbygestap wat daar langs die pad gesit het. Toe hierdie mans hoor dat dit Jesus is wat by hulle verbystap, het hulle dadelik besef dit is hulle gelukkige dag. Hulle het skielik hard begin skreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Maar die ander mense het vir hulle gesê: “Bly stil! Hou op om so te skreeu!” Dit het egter nie gehelp nie. Die blindes het net nog harder geskreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Jesus stap toe tot by hulle en vra vir hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” “Ag, Here, ons wil so graag sien! Maak asseblief ons oë gesond,” antwoord hulle. Jesus het hulle baie jammer gekry omdat hulle so hulpeloos daar gesit het. Toe vat Hy aan hulle oë. Dadelik kon hulle weer sien. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Vol blydskap het hulle daar en dan by die res van die skare ingeval en agter Jesus aangestap. Hulle kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan asseblief gou na Betfage toe,” vra Jesus twee van sy volgelinge. “Nes julle in die dorp kom, sal julle ’n donkie met ’n vulletjie by haar kry. Bring hulle al twee vir My. As iemand vra wat julle doen, sê: Die Here het die twee donkies nodig. Sodra Hy klaar is, sal ons hulle terugbring.” Jesaja het mos lank terug reeds gesê: “Sê vir die mense van Jerusalem: Word wakker, julle Koning is op pad. Hy kom eenvoudig op ’n donkie aangery, Hy sit op die vul van ’n pakdier.” Die twee dissipels het gedoen wat Hy gevra het. Toe hulle met die donkies daar aankom, het sy dissipels vir Hom ’n saal van klere gemaak. Toe Jesus begin ry, het baie mense om Hom saamgedrom. Die meeste van hulle het los stukke klere wat hulle by hulle gehad het mooi voor sy donkie oopgevou. Ander het weer boomtakkies op die pad voor Hom gegooi sodat Hy op die groen tapyt kon ry. Hulle het Hom soos ’n koning verwelkom en hard uitgeroep: “Hoera vir die Seun van Dawid! Prys Hom wat op gesag van die Here self kom. Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!” So is Jesus met die hele groep mense Jerusalem in. Dit het nogal ’n opskudding in die stad veroorsaak. “Wat gaan aan? Wie is hy?” het die mense in Jerusalem probeer uitvind. “Dit is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea,” het mense in Jesus se groep uitgeroep. In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’” Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak. Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap. Hulle konfronteer Jesus toe: “Hoor jy wat skreeu hierdie kinders oor jou?” “Ja,” sê Jesus. “Het julle dan nog nooit geleer nie: as kinders, wat nog nie eens behoorlik kan loop nie, iemand loof, verdien hy regtig daardie lof.” Jesus was nie lus om verder met hulle te stry nie en is daar weg, Betanië toe. Daar het Hy die nag geslaap. Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel. Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog. Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle. Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur! “Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.” Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy weer reguit tempel toe. Die mense het om Hom begin saamdrom. Hy het hulle alles geleer van God se nuwe wêreld. Van die godsdienstige leiers en ’n paar van die belangrike mense uit Jerusalem sluit toe by die groep mense om Jesus aan en vra: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?” Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers ’n vraag vra. As julle my vraag kan antwoord, sal Ek julle vraag antwoord. Wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?” Die Jode het dadelik besef dat Jesus hulle nou in ’n hoek gedryf het. Hulle was in die moeilikheid, want sê hulle: “God het hom die reg gegee,” sal Jesus hulle vra waarom hulle nie geglo het wat Johannes gesê het nie. Sê hulle weer: “Die mense het hom die reg gegee,” sal hulle in die gewone mense se slegte boekies kom. Die gewone mense het almal gedink dat Johannes ’n boodskapper van God was. Om uit die moeilikheid te bly kon hulle maar net sê: “Nee, ons weet nie.” Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Maar dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.” Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal? “Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?” “Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.” “Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap? Johannes het julle die pad kom wys wat God wil hê julle moet loop, maar julle het julle natuurlik nie aan hom gesteur nie. Die prostitute en die tollenaars het egter aan sy lippe gehang en God se pad begin loop. Julle het die neus vir hulle opgetrek, en wat is die gevolg? Julle is nog steeds op die verkeerde pad!” “Maar dit is nie al nie,” sê Jesus. “Luister ’n bietjie na hierdie verhaal: daar was ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het met alles wat nodig was. Rondom die wingerd het hy ’n stewige draad gespan. Hy het ook ’n plek reggemaak waar hy wyn kon maak. Die boer moes op ’n lang reis gaan en hy verhuur toe die wingerd aan ander boere. Hy het met hulle ooreengekom om vir hom van die druiwe as huur vir die grond te betaal. Toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar van sy werkers na die wingerd toe om sy druiwe te kry. In plaas van druiwe het hierdie werkers ’n onaangename verrassing gekry. Een is deur die boere aangerand. Gelukkig het hy nog bly leef, want ’n ander een is doodgemaak. Die boere het nog een onder die klippe gesteek, maar hy het darem weggekom. “Toe stuur die eienaar ’n hele klomp van sy werkers. Met hulle het dit egter nie beter gegaan nie. Hulle is net so sleg behandel. “Uiteindelik besluit hy om sy seun te stuur. Hy het geredeneer dat hulle niks aan sy seun sou doen nie. Vir sy seun behoort hulle mos net soveel respek te hê as vir hom. Hulle sal hom sekerlik goed behandel. Maar dit het nie so gebeur nie. Toe die boere die seun sien aankom, sit hulle koppe bymekaar. ‘Weet julle,’ sê hulle vir mekaar, ‘daardie seun gaan eendag hierdie grond erf. Dis nou ons kans. As ons hom nou doodmaak, sal ons mos later self die grond in die hande kan kry. Wanneer die eienaar eendag doodgaan, sal daar niemand meer oor wees om hier te boer nie.’ Voor die seun mooi weet wat aangaan, pak almal hom en sleep hom die veld in. Daar het hulle hom doodgemaak.” Jesus vra toe die klomp Joodse godsdienstiges: “Wat dink julle gaan die eienaar met die spul boere doen wanneer hy terugkom?” Die godsdienstiges was gou om te antwoord: “Ons dink die hel gaan om daardie boere losbrand. Daardie wingerd gaan nooit hulle s’n word nie, want die eienaar gaan hulle op die verskriklikste manier denkbaar straf. Hy sal dan die wingerd aan ander boere verhuur wat hulle huur op die regte tyd sal betaal.” Toe sê Jesus vir hulle: “Reg, maar moet Ek julle herinner aan wat daar in die Joodse Bybel staan? ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien!’ “Nou wil Ek by julle kom. Julle gaan julle plekke by God verloor. Om die waarheid te sê, God gaan julle soos die eerste boere uit sy nuwe wêreld gooi. Soos die tweede groep boere die eerste boere se plek gekry het, so sal God julle plekke dan aan mense gee wat doen wat Hy van hulle vra. “Oppas! Wie op hierdie Klip val, gaan bitter seerkry. Maar op wie die Klip val, van hom gaan niks oorbly nie.” Die groep Joodse godsdienstige leiers het die skimp verstaan en hulle kon dit nie verwerk nie. Daarom wou hulle Jesus sommer daar en dan in die tronk stop. Die gewone mense was egter oortuig dat Jesus regtig die Boodskapper van God is. Daarom kon die leiers op daardie tydstip niks aan Jesus doen nie. Jesus gesels toe daarna rustig verder: “Julle stel seker belang in hoe God in hierdie wêreld heers? Luister dan hierna: ’n koning het vir sy seun ’n groot troue gereël. Hy het baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was en die fees sommer ’n paar dae sou aanhou, het die koning gesê hy sal die mense kom roep sodra alles gereed is. Dan hoef hulle nie daar te kom sit en wag terwyl alles nog voorberei word nie. Toe alles mooi reg was, stuur die koning van sy helpers om die gaste te gaan haal. Snaaks genoeg wou die genooides toe nie meer kom nie. Die koning laat weet die genooides toe weer: ‘Kom, die tafels is gelaai met die heerlikste kos. Alles is reg. Laat die fees begin!’ Die genooides het egter hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Die een het gaan kyk hoe sy boerdery vorder en die ander een is werk toe. Party was so ongeduldig met die helpers wat so aanhoudend kom klop het dat hulle hulle sommer hardhandig verwilder het. Glo dit as jy wil, hulle het die helpers so seergemaak dat van hulle dood is. “Dit moes hulle nie gedoen het nie. Die koning was briesend! Hy stuur daarop sy soldate om die spul ongemanierde moordenaars te gaan soek en dood te maak. Sy soldate het dit gedoen en alles wat aan hierdie mense behoort het tot op die grond afgebrand. “Toe sê die koning vir sy helpers: ‘Kom ons probeer weer. Alles is mos reg vir die fees om te begin. Net jammer die genooides was ’n hoop nikswerds. Gaan nooi nou almal uit wat julle in die hande kry. Dit maak nie saak waar hulle is nie.’ Die helpers is daar weg en het almal voor die voet genooi. Die feessaal het begin vol loop. Die fees kon begin. “Die slawe het ook vir elkeen wat fees toe gekom het mooi klere gegee om aan te trek. Dit het gewys dat hulle nou gaste van die koning is. Toe die koning die saal inkom, val sy oog egter op iemand wat nie sulke feesklere aanhet nie. Die man wou natuurlik daar buite nie erken dat hy die uitnodiging nie wou aanneem en vriende met die koning wou wees nie. Tog het hy skelm by die fees ingeglip. Die koning vra hom toe: ‘Ou maat, wat soek jy hier? Jy het seker gedink jy kan skelm hier inkom, want as jy saam met my helpers hiernatoe gekom het, sou hulle vir jou ook mooi klere gegee het. Toe hulle jou daar buite uitgenooi het, het jy natuurlik gemaak of jy jou nie aan hulle steur nie, nie waar nie?’ Die man was vas; hy het nie geweet wat om te sê nie. Die koning sê toe vir sy helpers: ‘Gooi hierdie man hier uit! Raak daar buite in die donker van hom ontslae. In die hel sal hy voel wat dit beteken om van pyn op jou tande te kners.’ “Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarna koppe bymekaar gaan sit. Hulle wou so graag hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle het saam beplan hoe hulle dit sou regkry. Hulle het besluit om Hom met ’n moeilike politieke saak in ’n strik te laat trap. Daarom het hulle ondersteuners van Herodes, die koning van die gebied, saamgevat toe hulle met Jesus gaan praat het. Toe hulle by Jesus kom, stel hulle hulle plan in werking. Hulle het met die heuningkwas begin: “Meneer, jy is ’n goeie onderwyser. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien jy soek nie gewildheid nie, maar net die waarheid. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.” Daarna kom hulle met die angel: “Maar sê nou vir ons, dink jy dit is reg dat ons so baie belasting aan die keiser moet betaal?” Die keiser was immers ’n koning van ’n vreemde land wat hulle onderdruk het. Jesus was te uitgeslape vir hulle. Hy het deur hulle slinkse plan gesien. Daarom sê Hy vir hulle: “Julle weet so goed soos Ek dat julle My in die moeilikheid wil bring. Maar nogtans gaan Ek julle antwoord. Het iemand miskien vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting moet betaal, asseblief?” Daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke. Vinnig gee iemand vir Hom een. Hy sê toe vir hulle: “Kyk mooi na hierdie geld. Wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle vinnig. “As die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. “Maar onthou, julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hierdie antwoord het die opposisie se plan heeltemal deurmekaargekrap. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. So stil-stil is hulle maar daar weg. Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom. “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’ Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou. Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers. Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê: Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?” Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het. Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.” Die Fariseërs het daarna kajuitraad gehou, maar Jesus het nie op Hom laat wag nie. Op sy beurt vra Hy weer vir die Fariseërs ’n strikvraag: “Wie se Seun dink julle is die Messias?” “Dawid s’n,” sê hulle dadelik. “Wel, as dit so is, hoe verklaar julle dan dat Dawid in een van sy psalms die Messias sy ‘Here’ noem? Luister hier wat sê Dawid self: ‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit op die spesiale ereplek hier langs My, totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’ “Onthou, hy het dit gesê toe hy onder die inspirasie van die Heilige Gees was. Verklaar dan nou vir My: As Dawid die Messias ‘Here’ noem, hoe is dit moontlik dat Hy Dawid se seun ook nog kan wees?” En daar staan die Fariseërs weer met ’n mond vol tande. Nie een het geweet wat om te sê nie. Hulle het van toe af maar besluit om Hom nie weer in die openbaar iets te vra nie. Net mooi elke keer as hulle Hom probeer vasvra het, het Hy ’n gek van hulle gemaak. Jesus draai toe na die groep mense wat naby Hom gesit het. Sy getrouste volgelinge was ook onder hulle. “Glo My,” sê Hy, “die Joodse teoloë en Fariseërs weet presies wat daar in die wet van Moses geskryf staan. Al wat hulle heeldag doen, is om die wet te lees. Julle kan gerus maar luister na wat hulle oor die wet van Moses sê en dan ook so leef. Maar oppas! Moet net nie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. Hulle woorde en hulle dade verskil soos dag en nag. “Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie. Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hande klap. Hulle koop die grootste Bybels, bid die langste en sing die hardste in die kerk. Hulle probeer ook so vroom lyk dat ’n mens hulle dadelik tussen duisend ander mense sal uitken. In die kerk hoef julle nie na hulle te soek nie. Julle sal hulle op daardie sitplekke kry waar niemand hulle kan miskyk nie. En dit is vir hulle tog te lekker om in die winkels eerbiedig deur die mense gegroet te word met: ‘Goeiemôre, liewe Dominee,’ of watter titel hulle ook al belangrik laat voel.” “Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie. “Daarom moet julle selfs hier op aarde julle hemelse Vader se gesag bo alles erken, selfs bo die gesag van julle aardse pa. “Oppas daarvoor dat mense na julle begin opsien as ‘supergelowiges’ omdat julle meer weet of meer ervare as hulle in die godsdienstige dinge is. Daar is net Een na wie opgesien mag word, en dit is Christus. “Die reël wat elke gelowige moet onthou, is: onder God se kinders is die een wat die ander dien die belangrikste. Dit beteken dat God die een wat gedurig die belangrikste wil wees en oor ander baas wil speel, heel agter in die ry sal laat staan. Die een wat egter ander dien sonder om gedurig te wonder hoe belangrik dit alles hom gaan maak, sal van God self die ereplek voor in die ry kry.” “Luister, Fariseërs, godsdienstige leiers, julle wat mense so mislei, julle kan maar uit vrees vir God begin bewe. Julle beroof die mense van die kans om naby God te wees en Hom te dien. Julle self weet nie hoe dit voel nie en daarom gun julle dit ook vir niemand anders nie. *** “Ek sê weer, julle kan maar begin bewe! Julle ry halfpad om die wêreld om een persoon te oortuig dat hy die Joodse godsdiens moet aanneem. En as hy dit doen, wat maak julle dan? Dan maak julle hom soos wat julle self is. En daarmee help julle die arme man die afgrond in, reguit die hel in. “Ja-nee, julle is in die moeilikheid by God. Julle vertel vir almal dat julle net die mense is om hulle geestelik op die regte pad te lei. Tog is julle so blind soos molle. Kyk net wat doen julle: julle sê vir mense dat as hulle iets beloof met hulle vingers gekruis, hulle nie hulle belofte hoef na te kom nie. Maar beloof hulle iets met hulle hand op die Bybel, moet hulle dit ernstig bedoel. Wat ’n klomp onsin! Is daar nou skielik baie meer krag in die buiteblad van die Bybel as in julle gekruiste vingers? “Julle sê ook: ‘As iemand plegtig belowe dat hy iets sal doen, hoef hy nie sy woord te hou nie. As hy egter dieselfde ding beloof, maar dit op ’n stuk papier ook skryf, mag hy nie sy woord breek nie.’ Kry julle nie skaam nie? Wat dink julle is die belangrikste: Julle woorde of die stuk papier? [21-22] Antwoord vir My net dié vraag: Hoe kan gekruiste vingers, ’n stuk papier of die buiteblad van die Bybel nou ’n belofte maak of breek? ’n Belofte is mos ’n belofte! God steur Hom nie aan al hierdie dinge soos vingers of papier nie; vir Hom is ’n belofte ’n belofte wat nie gebreek mag word nie. Dit maak nie saak hoe die belofte gemaak is nie. *** “Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie. “Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie. “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie. Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.” “Julle is regtig op die verkeerde pad. Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat My aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.” “Julle rig groot grafstene op vir julle belangrike mense. Julle bou monumente vir julle helde van ouds en sit gedurig met eerbied blomme daar neer. Hieroor is julle ernstig. Julle beweer dat as julle destyds geleef het, julle nie hierdie manne van God kwaad sou aangedoen of sou doodgemaak het soos die mense destyds gedoen het nie. Maar julle is maar net die kinders van daardie mense wat die manne van God vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie. Julle voorouers het die beker halfpad met die bloed van die manne van God volgemaak. Toe, maak julle nou maar daardie werk vir hulle klaar. Maak die beker vol! “Julle klomp bedrieërs! Dink julle julle sal julle uit die hel kan loslieg? Dink dan maar weer! Daarom stuur Ek aanhoudend manne van God na julle toe. Hulle probeer julle op allerhande maniere op die regte pad help. En wat doen julle met hulle? Hierdie een gryp julle en maak hom dood. Daardie een laat julle aan ’n kruis vasslaan. Ander verneder julle voor almal deur hulle by julle vergaderings uit te skel en selfs te slaan. As hulle probeer wegkom, probeer julle dit ook vir hulle so moeilik moontlik maak. Oral waar hulle gaan, is dit dieselfde storie: belediging en vervolging. Daarvoor sorg julle maar alte goed. “Maar julle skuld hoop op. Glo My, God sal julle aankla vir elke druppel bloed van elke goeie mens wat op die grond geval het. Hy gaan julle by Abel begin aankla. Abel was mos ’n goeie mens, maar hy is doodgemaak. Een vir een sal julle na God se aanklagte moet luister tot by Sagaria, Berekja se seun. Julle het hom mos in die middel van die tempel reg voor God se oë doodgemaak. Ek sê julle, julle is net so skuldig soos julle voorouers. God sal julle nie laat loskom nie. “Ai, wat maak julle, mense van Jerusalem? Julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood. Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek het oor julle gevoel soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het julle rug vir My gedraai. Daarom kan dit nie anders nie. Daar sal niks vir julle oorbly nie. Alles om julle gaan inmekaarstort. Jerusalem gaan ’n spookdorp word. “Wat kan Ek nog sê? Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Ons paaie sal nie weer op hierdie manier kruis nie, in elk geval nie voor die dag waarop julle sal erken en sal moet uitroep nie: ‘God is baie goed vir Hom wat op die gesag van die Here kom.’” Daarna is Jesus-hulle daar weg. Terwyl hulle so by die tempel verbystap, praat sy dissipels oor hoe mooi en massief die gebou is. Jesus sê toe: “Ja-nee, dit is darem ’n groot en pragtige gebou. Maar Ek het slegte nuus. Hierdie gebou gaan een van die dae tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie ’n baksteen wees wat op sy regte plek gelos gaan word nie.” Terwyl hulle in die Olyfberg se rigting stap, vra Jesus se dissipels Hom: “Wat sal die teken wees dat ons kan weet: die einde is hier; maak gereed, die Messias is finaal op pad?” “Wees versigtig vir mense wat allerhande stories hieroor gaan versin,” sê Jesus toe vir hulle. “Sulke mense sal sommer skielik van êrens af kom en vir almal vertel dat dié een of daardie een die eintlike Messias is. En hulle sal dit regkry om baie mense te flous. Moenie sê Ek het julle nie gewaarsku nie. “Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie. Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.” “As julle in die tempel daardie veragtelike ‘ding’ sien staan wat alles net wil vernietig, moet julle vinnig padgee. Die ‘ding’ is so veragtelik dat Ek nie eens sy naam wil noem nie. Die profeet Daniël het oor hierdie ‘ding’ geskryf. As julle lees wat hy geskryf het, sal julle verstaan wat Ek bedoel. “As julle in daardie stadium in die omgewing van Jerusalem is, moet julle so gou moontlik in die heuwels gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers weer in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie eers mooi gaan aantrek nie; maak net dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat dan babas verwag of klein babatjies het. Hulle gaan swaarkry! Vra God dat julle nie in die koue van die winter of op die sabbat hoef te vlug nie. Julle wêreld gaan heeltemal deurmekaargekrap word. Mense sal swaarkry soos nog nooit tevore nie. En as hulle kan uithou tot die einde, sal dit net-net wees. Gelukkig sal God die einde op die regte tyd laat kom, anders sal niemand dit haal nie. “As iemand julle dan wil wysmaak dat dit die Christus is wat kom, lag hom uit. Moenie ’n woord glo wat hy sê nie. Daar sal mense kom wat sal voorgee dat hulle die ware Messias is. Hulle gaan almal probeer oortuig dat hulle manne van God is. Dit gaan ook nie net by praat bly nie. O nee! Glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat mense beïndruk om hulle gaan saamdrom. Hulle sal dit selfs regkry om God se mense ’n rat voor die oë te draai. Maar oppas, dit alles is leuens. Ek waarsku julle nou voor die tyd. Moenie dat julle deur hulle op loop gesit word nie. As die mense dus opgewonde skreeu: ‘Kom, Christus is daar buite die stad op ’n verlate plek,’ moenie julle daaraan steur nie; moenie eens moeite doen om te gaan nie. Of as hulle julle roep: ‘Kom gou, Hy kruip hier in die hart van die stad weg,’ glimlag net vir hulle en gaan julle gang. Die Seun van God sal nie skelm of in die geheim kom en iewers wegkruip sodat mense Hom moet gaan soek nie. Wees verseker: wanneer Hy kom, sal almal, en Ek bedoel almal, dit weet. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en ’n mens dan alles vir daardie oomblik helder kan sien. So helder en duidelik sal almal die Seun ook sien wanneer Hy kom. Moenie julle laat kul deur die baie mense wat agter hierdie bedrieërs aanloop nie. Waar baie mense saamdrom, kry jy nie noodwendig die waarheid nie. Immers, aasvoëls kom ook in groot troppe rondom vrot vleis bymekaar.” “Daardie swaarkry sal skaars verby wees of die son sal skielik dowwer word, en die maan sal glad nie meer opkom nie. Die sterre sal uit die hemel val en die natuurwette wat die skepping beheer, sal hulle krag verloor. Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’ Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring. “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is. Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is. “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie. Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan. “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit. “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag. Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie. Hulle het net gestaan en wonder waarom Noag nou so iets doen. Toe begin die reën val en val. Alles spoel later weg; hulle huise, diere en uiteindelik ook hulle self. Die koms van die Seun sal mense wat voortgaan asof niks gaan gebeur nie, ook so verras. Twee mans sal op dieselfde land werk - die een sal gereed wees vir die Seun se koms en die ander een nie. Daarom sal Jesus die een saamneem en die ander een los. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Jesus sal die een kom haal en die ander een los. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat die Here jou saamneem wanneer Hy kom. “Dit beteken dat julle altyd gereed moet wees. Julle vra hoekom. Weet die eienaar van ’n huis miskien wanneer ’n dief by hom gaan inbreek? Natuurlik nie, want dan sou hy hom mos kon voorlê en keer dat hy inbreek. Dan sou daar nie so iets soos diefstal gewees het nie. Maar dit gebeur nie so nie. Die dief kom wanneer die eienaar dit nie verwag nie. Net so sal dit gaan met die koms van die Here. Daarom moet julle maar altyd gereed wees. Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees. “Laat Ek vir julle nog ’n voorbeeld gee. Watter soort werker sal ’n voorman van ’n fabriek gewoonlik die graagste oor die ander wil aanstel? Dit is die persoon wat hard werk, of die voorman daar is om dit te sien of nie. Hy weet wat om te doen en doen dit. So ’n werker sal goed beloon word. Uiteindelik sal hy oor die hele fabriek aangestel word. ’n Werker wat egter nooit gaan vorder nie, is die hopelose een wat net die hele tyd die voorman dophou. As die voorman wegkyk, hou hy op werk. As die voorman lank weggaan, maak hy nog meer droog, drink selfs in werkstyd en pla die hele tyd die ander werkers in hulle werk. Daardie werker gaan ontnugter word. Op ’n dag, as hy so dronk daar sit en die ander pla, gaan die voorman instap. Dit sal natuurlik wees wanneer hy dit die minste verwag. Dan gaan die poppe behoorlik dans. Daardie werker gaan alles verloor wat hy gehad het. Wanneer die Here weer kom en Hy kry mense so onvoorbereid soos daardie hopelose werker, is daar vir hulle geen hoop meer oor nie. Die hel is hulle voorland. Daar sal hulle krul van die pyn en skreeu van smart.” [1-4] Jesus vertel toe vir hulle nog ’n verhaal oor hoe dit in God se nuwe wêreld gaan wees: “Daar was tien jongmeisies wat ’n troue wou bywoon. Soos die gewoonte is, het hulle hulle lampe gevat en die bruidegom langs die pad gaan inwag. Hy moes sy bruid deur die loop van die aand by haar huis gaan haal. Niemand het egter die presiese tyd geweet wanneer die bruidegom en sy vriende sou kom nie. Hulle was nog by sy huis besig om partytjie te hou. Die helfte van die meisies was slim genoeg om ekstra lampolie saam te vat, ingeval die bruidegom nie gou kom nie. *** *** *** “Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’ Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle. Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin. “Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’ Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’ “Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. “Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.” “Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’ “Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’ Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker. “Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’ Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.” “Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei. Hy sal die een groep regs van Hom laat staan en die ander groep aan sy linkerkant. “Die Koning sal dan na die mense regs van Hom draai. ‘Staan nader, want my Vader is baie tevrede met julle. Heel van die begin af het Hy die hemel vir mense soos julle reggemaak. Hy wil hê dat julle dit saam met Hom moet kom geniet. Maar weet julle waarom God so tevrede met julle is? Laat Ek julle vertel. Ek het niks gehad om te eet nie, maar julle het My kos gegee. Toe Ek dors was, was julle daar met ’n glas water. Toe Ek nog vir julle ’n onbekende was, het julle My al in julle huise verwelkom en selfs slaapplek gegee. Julle het vir My klere gegee toe Ek niks gehad het om aan te trek nie. Op my siekbed het julle My geduldig versorg. Toe Ek in die tronk beland het, het julle julle nie vir My geskaam nie, maar vir My kom kuier.’ “Die mense wat reg gelewe het, onderbreek Hom: ‘Here, wag so ’n bietjie. Waarvan praat U? Wanneer het ons U kos gegee toe U honger was of ’n glas water toe U dors was? Ons kan nie onthou dat ons ooit vir U klere of blyplek gegee het nie. Help ons, asseblief, ons verstaan nie mooi nie. Wanneer was U siek of in die tronk en het ons U gehelp?’ “Die Koning op die troon antwoord: ‘Wil julle regtig weet wanneer julle hierdie dinge vir My gedoen het? Luister dan goed: elke glas water of stukkie brood wat julle aan ’n broer van My gegee het, het julle eintlik aan My gegee. Wie my vriende help, al is hulle hoe onbelangrik, help My.’ “Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom? Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’ “Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’ “Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’ “Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef.” Daarmee het Jesus vir hulle gesê wat Hy wou sê. Hy begin toe met die dissipels praat oor die paasfees wat nader kom: “Julle weet natuurlik dat dit oor twee dae paasfees is. Dit gaan ’n paasfees wees om te onthou, want Ek gaan verraai en gekruisig word.” Juis toe het al die belangrikste Joodse leiers in die huis van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle het allerhande planne beraam om Jesus dood te maak, maar hulle moes eers ’n rede kry om Hom te vang. Hulle wou Hom egter nie vang terwyl die paasfees aan die gang was nie. “Ons wil niks waag en dalk ’n opstand onder die mense by die fees veroorsaak nie,” het hulle gemeen. [6-7] Terwyl die Joodse leiers met hierdie wraakplanne besig was, was Jesus juis in Betanië. Hy het by Simon, wat eers melaats was, gebly. Jesus-hulle was besig om te eet. ’n Vrou kom toe na Hom toe met ’n fles duur olie. Die olie was soos parfuum. Sy skud die hele fles olie oor Hom uit. *** Toe die ander aan die tafel sien wat sy besig was om te doen, was hulle sommer baie omgekrap. “Hou op! Jy mors die goed,” roep hulle uit. “Ons kon dit vir baie geld verkoop het. Dink net hoeveel arm mense ons daarmee kon gehelp het.” Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.” Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle. Hy antwoord hulle: “Gaan in die stad na so-en-so toe. Sê dan vir hom: ‘Jesus sê: My tyd word nou min. Ek en my dissipels sou graag hier by jou aan huis die paasete wou eet.’” Jesus se volgelinge is daar weg en het alles presies so gaan doen. Teen sononder het die paasete begin. Jesus en al twaalf sy getrouste volgelinge was daar. Terwyl hulle nog so sit en eet, sê Jesus: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê: een van julle wat hier sit, gaan My in die rug steek.” Toe hulle dit hoor, was hulle baie hartseer en hulle oorval Jesus met vrae. “Dit is seker darem nie ek nie, nie waar nie, Here?” wou elkeen weet. Jesus sê toe: “Kyk maar, die verraaier is die een wat sy hand ook in die bak insteek om kos te vat wanneer Ek dit doen. Ja-nee, aan die een kant is dit nodig dat die Seun van God sterf. Die Skrif skryf daarvan. So is dit bestem. “Maar aan die ander kant bly die verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Seun van die mens. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai, vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?” “Net so!” antwoord Jesus hom. Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.” Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.” “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.” Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat. Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.” Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie? Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.” ’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!” Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.” Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!” Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.” Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.” Hy staan op en stap deur se kant toe. Voor hy by die deur uit is, loop hy in ’n ander vrou vas. “Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se vriende.” Weer het Petrus sy kop heftig geskud en gesê: “Ek sweer, ek ken hierdie man van geen kant af nie!” Dit was nie lank nie of ’n groepie mans kom staan daar by Petrus. “Sowaar, jy moet deel wees van daardie groep volgelinge van Jesus. Ons kan dit aan jou aksent hoor. Julle klomp uit Galilea praat mos anders as ons hier in Judea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy was. “Ek sweer, man, ek het hierdie man nog nooit eens ontmoet nie!” Juis toe kon ’n mens die gekraai van die haan in die vroeë oggendure hoor wegsterf. Petrus het ook die haan gehoor. Die woorde van Jesus het hom te binne geskiet: “Voor die haan kraai, sal jy drie maal sê dat jy My nie ken nie.” Hy kon toe nie langer daar bly nie. Buite het die trane oor sy wange gestroom. Met sonsopkoms het die Joodse leiers hulle besluit beklink: Jesus moes doodgemaak word. Daarom het hulle Hom geboei en na Pilatus, die goewerneur, gestuur. Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee. “Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.” “Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode. Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het. Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.” Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop. Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”. Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het: “En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het, en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.” Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur. “Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus. Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie. Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie. Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie. Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris. Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?” Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur. Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!” Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word. Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” skreeu hulle. “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?” “Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?” Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!” Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak. Hy kry toe ’n bak water en was sy hande daar voor almal. “Ek wil niks meer met die saak te doen hê nie. Wat verder gebeur, is nie my skuld nie. Gaan doen julle nou wat julle wil.” Die hele volk roep daarop: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal die verantwoordelikheid dra, ons en ons kinders!” Pilatus het Barabbas losgelaat en Jesus laat gesel. Daarna het hy gesê dat hulle Jesus maar kon kry om Hom te kruisig. Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan. Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Jesus toe daar gekruisig. Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel. Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker. Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!” Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok. “Wag so ’n bietjie,” sê ’n ander, “laat ons kyk of Elia hom nie dalk sal kom afhaal nie.” Al wat egter gebeur het, was dat Jesus hard geskreeu het en toe dood is. Net toe het die gordyn wat die vertrekke in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel. Grafte het oopgegaan en baie gelowige mense wat reeds begrawe was, het uit die grafte gekom. Hulle is Jerusalem in. Daar het baie mense hulle gesien. Die offisier en die ander soldate wat daar by die kruis diens gedoen het, het hierdie aardbewing en al die ander dinge wat gebeur het, staan en bekyk. Dit het hulle baie bang gemaak. “Hy was sowaar die Seun van God,” het hulle gestamel. Heelwat vroue het op ’n afstand gestaan en kyk. Hulle het Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, asook die ma van die Sebedeus-broers. Dit het al laat begin word. ’n Ryk man, Josef van Arimatea, wat ook ’n volgeling van Jesus was, het daar aangekom. Hy het vir Pilatus die liggaam van Jesus gaan vra. Pilatus het beveel dat die liggaam vir hom gegee moes word. Josef het die liggaam in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe. Die graf het aan hom behoort. Dit was ’n nuwe graf wat hy self in die rots laat uitkap het. Omdat die graf byna soos ’n grot was, het hy ’n groot rots voor die ingang gerol. Daarna is hy weg. Maria Magdalena en die ander Maria het egter voor die graf bly sit. Die volgende dag, net na die voorbereidings vir die paasfees, is die Joodse leiers en die Fariseërs na Pilatus toe. “U Edele,” het hulle gesê, “iets het ons intussen bygeval. Toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy beweer dat hy na drie dae uit die dood opgewek sal word. Wees asseblief so vriendelik om opdrag te gee dat die graf drie dae lank goed opgepas word. Sy dissipels sal hom dan nie kan kom steel en die storie vir almal vertel dat hy uit die dood opgewek is nie. So ’n storie sal baie erger wees as die een dat hy opgewek gaan word!” Pilatus sê vir hulle: “Nou maar goed; julle het julle wagte. Gaan pas die graf so goed op as wat julle kan.” Hulle is toe daar weg om die graf te gaan oppas. Hulle het nie slegs die ingang met die klip toegemaak nie, maar ook wagte daar gelos. Die Sondagoggend vroeg, net toe dit begin lig word, is Maria Magdalena en die ander Maria af graf toe. Hulle was net by die graf toe die aarde skielik begin bewe. Verskrik kyk hulle op en sien ’n engel van die Here uit die hemel na hulle toe kom. Hy rol toe die groot klip voor die graf weg en gaan sit daarop. [3-4] Toe die wagte hom sien, het hulle hulle byna doodgeskrik. Soos iemand wat flou word, slaan hulle neer, veral toe hulle die engel se gesig sien. Dit het gelyk of daar weerligstrale uitkom, so het dit gestraal. Sy klere was skitterend blink. *** Die engel praat toe met die vroue: “Moenie vir my bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus, die Een wat hulle gekruisig het. Hy is nie meer hier nie. Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die plek waar Hy gelê het. As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.” Die vroue het nie op hulle laat wag nie. Hulle hardloop toe so vinnig as wat hulle kon huis toe om vir die dissipels te gaan vertel. Van skrik het hulle bene nog maar gebewe, maar hulle harte het van pure blydskap vinnig geklop. Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë. Daar het Hy gestaan. “Goeiemôre!” het Hy gesê. Die vroue was totaal uit die veld geslaan. Hulle het voor Jesus neergeval en sy voete vasgegryp. Woorde van aanbidding het oor hulle lippe gestroom. Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat Ek hulle in Galilea sal kry.” Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het. Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan. “Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg. As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.” Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog. Die elf dissipels is van Jerusalem af terug Galilea toe. Daar het hulle Jesus op die berg gaan soek, soos Hy gevra het. Hulle het Hom ook daar gekry. Party het nog maar baie onseker gevoel oor alles wat gebeur het. Tog het hulle Hom geloof en aanbid. Jesus het nader gestaan. “God het aan My al die mag gegee wat daar is. Niemand is magtiger as Ek nie. Ek wil hê julle moet iets vir My doen: “Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes of verskonings te volg. As hulle bereid is om My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So sal julle hulle inlyf om deel van God se familie te wees. Maar dan is julle nog nie klaar nie. Leer hulle en lei hulle dan in alles wat Ek vir julle geleer het. Vertel hulle hoe belangrik dit is om aan My gehoorsaam te wees en te doen wat Ek vra. “En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees.” Die goeie nuus oor Jesus begin met Johannes wat mense gedoop het. Daaroor het God se boodskapper Jesaja jare gelede al geskryf: “Ek stuur my boodskapper voor jou uit om alles reg te maak vir jou koms, sê God. In die wildernis skree iemand hard uit: Maak seker dat die pad reg is waarop die Here moet loop. Dit moet mooi gelyk wees.” Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry. Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.” Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop. Toe Jesus na sy doop uit die water kom, was dit of die hemel oopskeur. Iets wat soos ’n duif gelyk het, het van bo af op Hom neergesak. Dit was die Heilige Gees. Net toe weerklink ’n stem uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek het Jou lief en Jy maak My bly.” Die stem was nog nie behoorlik weg nie of die Heilige Gees vat Jesus die woestyn in. Daar het Hy 40 dae gebly. Satan het Hom nie met rus gelaat nie. Satan wou kyk of hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie. Jesus was nie alleen nie. Die wilde diere van die veld was by Hom en die engele het gesorg dat Hy alles het wat nodig was. ’n Rukkie daarna is Johannes in die tronk gestop. Jesus is toe terug Galilea toe en het vir mense begin vertel watter goeie nuus God vir hulle het. “Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.” Op ’n dag het Jesus langs die See van Galilea gestap. Daar kry Hy twee vissermanne wat besig was om hulle nette in die see te gooi. Dit was twee broers, Simon en Andreas. “Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ’n ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.” Hulle los toe alles net so en is saam met Hom. [19-20] ’n Entjie verder sien hulle nog twee broers aan die werk om die nette reg te kry. Hulle was Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Jesus nooi hulle toe ook daar en dan saam. Sonder om te huiwer is hulle ook agter Jesus aan. Hulle pa, Sebedeus, en die mense wat vir hom gewerk het, het alleen in die boot agtergebly. *** Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor. Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. [32-33] Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. *** Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.” Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom. ’n Paar dae later is Jesus Kapernaum toe. Die mense het dadelik daarvan gehoor en het die huis volgepak. Daar was so baie mense dat hulle tot in die straat gestaan het. Jesus het met hulle oor die dinge van God gepraat. Juis toe kom daar vier mans aan wat ’n lam man dra. Hulle kon nie deur die klomp mense by Jesus uitkom nie, want die mense het die hele plek toegestaan. Hulle maak toe ’n ander plan. Hulle klim op die dak, maak ’n gat daarin en laat die verlamde man versigtig op sy bed afsak. Toe Jesus sien hoe hierdie mense Hom vertrou, sê Hy vir die siek man: “My vriend, God vergewe al die verkeerde dinge wat jy gedoen het.” Dit het party van die kenners van die Joodse wet laat wonder: “Hoe op aarde kan hy so praat? Dit is darem te erg, want wie kan sê dat God al die verkeerde dinge vergewe, behalwe God self? Met dié praatjies wys hy dat hy g’n respek vir God het nie.” Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties? Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’? Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man: “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.” Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is. Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel. Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap. ’n Rukkie later het Levi ’n ete by sy huis gehou. Jesus was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het. Daar was nogal baie van hulle. Die res van die gaste was mense met wie die godsdienstige Jode niks te doen wou hê nie omdat hulle glo te sondig was. Die streng godsdienstige Jode wat die wet in die fynste besonderhede bestudeer het, het die hele petalje dopgehou. Dink net: Jesus is vriende met die klomp slegte mense en eet selfs saam met hulle! Hulle vra toe vir Jesus se volgelinge: “Hoekom eet hy saam met die klomp sondaars asof hy hulle goeie vriend is?” Jesus hoor dit toe. “As iemand gesond is, wil hy nie ’n dokter hê nie, maar as hy siek word, gaan soek hy gou ’n dokter. Net soos ’n dokter nie heeltyd gesondes dokter nie, net so hou Ek My nie heeltyd besig met die mense wat weet wat God wil hê nie. Ek hou My liewer besig met mense wat ver van God af leef.” Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?” Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.” Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.” Een sabbat het Jesus-hulle deur ’n koringland gestap. Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af om aan te begin peusel. Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Wat gaan hier aan? Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle tog duidelik weet verkeerd is om op ’n sabbat te doen?” Jesus het rustig geantwoord: “Het julle nog nie in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne in die moeilikheid was en honger geword het nie? Dit was in die tyd toe Abjatar in beheer van al die priesters was. Dawid is in die blyplek van God in en het die brood geëet wat spesiaal vir God eenkant gesit is. Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. Boonop het Dawid vir sy manne ook daarvan gegee.” Jesus beklemtoon toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat. Daarom kan Ek sê wat op die sabbat mag gebeur en wat nie.” Op ’n ander keer is Jesus weer na die bymekaarkomplek van die Jode toe. Daar was ’n man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Daar was Fariseërs wat Jesus graag in die moeilikheid wou bring. Hulle het Hom fyn dopgehou om te sien of Hy die gebreklike man op die sabbat gesond sou maak. Jesus stel hulle toe nie teleur nie. Hy sê vir die siek man: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Toe draai Jesus na die moeilikheidmakers toe: “Wat dink julle mag ’n mens op die sabbat doen? Moet jy goeddoen, of kwaad? Moet jy iemand se lewe red, of hom doodmaak?” Hulle het niks gesê nie. Jesus het verontwaardig na hulle gekyk. Hy was veral omgekrap omdat hulle nie hulle fout wou insien en erken dat hulle verkeerd was nie. Hy sê toe vir die siek man: “Steek uit jou hand.” Hy doen dit toe, en daar was sy hand heeltemal gesond. Die godsdienstige Jode wat aan die party van die Fariseërs behoort het, is toe daar uit en het saam met die mense wat Herodes ondersteun het, begin planne maak om Jesus dood te maak. [7-8] Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom. *** Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom. Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak. Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.” Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is. Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan. [14-15] Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem. *** Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai. Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie. Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.” Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen. Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.” Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk. Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep. Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle. Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?” Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie. “Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.” Jesus het mense weer langs die see van God begin vertel. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy in ’n skuit moes klim wat effens van die strand af weggestoot is. Die mense het al langs die strand gesit. Jesus het hulle baie dinge van God en sy nuwe wêreld geleer deur vir hulle stories met ’n les in te vertel. Hy het gesê: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooiery het van die saad op die voetpad geval wat deur die land geloop het. Die voëls was dadelik by en gou was daar nie ’n korreltjie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die rotse geval wat in die land gelê het. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie eintlik wortels in die vlak grond maak nie en kon dus nie grootword nie. Die son het die plantjies sommer gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen die lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk voordat dit enige saad kon maak. Dan was daar ook saad wat in die land self met die goeie grond geval het. Daardie saad het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek sê? Asseblief, luister mooi daarna.” Later, toe die groot klomp mense weg was, het Jesus se twaalf getrouste volgelinge en die paar ander mense wat nog oor was, Hom uitgevra oor die verhale wat Hy vertel om hulle te leer. [11-12] Jesus het hulle so geantwoord: “As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer. Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan, maar vir die mense wat die verhale nie in die lig van my boodskap wil verstaan nie, sal alles net blote verhale bly. Die gevolg is dat die verhale vir hulle maar net stories sal wees. Hulle sal die stories hoor, maar nie ’n woord verstaan wat aangaan nie. As hulle iets verstaan het, sou hulle na God toe teruggedraai het en Hy sou hulle alles vergewe het wat hulle verkeerd gedoen het.” *** Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het. Die boer saai die boodskap van God. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.” Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie? Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.” Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.” Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel. Toe dit begin skemer word, sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.” Die dissipels is toe saam met Jesus, wat nog in die skuit was, daar weg. Die ander mense het op die strand agtergebly, hoewel party wel met skuitjies saam oorkant toe is. Daar bars toe ’n woeste storm los. Die golwe het tot binne-in die skuit geslaan en die skuit het vol water begin word. Jesus het agter in die skuit op ’n kussing gelê en slaap. Die dissipels skud Hom toe wakker en sê: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?” Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe: “Stil! Word rustig.” Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: “Vir wat was julle so bang? Vertrou julle My dan nie?” Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in sy teenwoordigheid. “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê,” het hulle onder mekaar gewonder. So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly. [2-3] Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie. *** Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk. Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap. Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak. So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees: “Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees. Maar sê eers vir My jou naam.” “My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord. Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie. ’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke. Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip. Die varkoppassers is toe in ’n stofstreep daar weg om vir almal in die dorp en omgewing te gaan vertel wat gebeur het. Van oral af het die mense gestroom om te kom kyk. Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak. Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het. Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee. Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie. Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie. Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal. Na die episode met die Geraseners is Jesus weer met die skuit terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand uitklim, het ’n massa mense om Hom saamgedrom. Onder die mense was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man, want hy was die leier van die sinagoge waar die Jode bymekaargekom het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en gryp sy voete vas. Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom. Die mense is agter hulle aan en het rondom Jesus gedruk en gebondel. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en toe by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond! Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?” Die dissipels was dadelik by: “U sien tog hoe druk en beur die mense hier om U. Hoe kan U nog vra: ‘Wie’t aan My gevat?’” Maar Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie, maar bly rondkyk om te sien wie dit was. Die vrou het besef wat met haar gebeur het. Vrees het haar beetgepak en sy het begin bewe. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.” Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus (die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad: “Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.” Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.” Jesus, saam met Petrus en die twee broers, Jakobus en Johannes, is toe alleen verder. Jesus wou nie hê dat al die mense moes saamgaan nie. Toe hulle by Jaïrus se huis aankom, was daar ’n groot klomp mense wat vreeslik huil en rou. Hulle het vreeslik te kere gegaan en ’n lawaai gemaak. Jesus gaan toe in en vra vir hulle: “Vir wat gaan julle so te kere? Die kind slaap net. Sy is nie dood nie.” Die mense bars toe uit van die lag asof Jesus nie weet wat Hy sê nie. Hy jaag toe al die mense uit die huis uit, behalwe die ouers en sy drie volgelinge. Saam is hulle na die bed van die dogtertjie toe. Jesus vat die dogtertjie se hand en sê: “Talita koem!” (Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê, staan op.”) [42-43] Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus vra toe dat iemand vir haar kos moet gee. Die mense wat daar gestaan het, was totaal uit die veld geslaan. Jesus het hulle baie mooi gevra om nie vir enigiemand te vertel wat daar gebeur het nie. Van Jaïrus se huis af is Jesus saam met sy dissipels terug na sy eie mense in Nasaret. Op die sabbat het Jesus die mense in die sinagoge meer van God gaan vertel. Baie van hulle was besonder beïndruk. Hulle het onder mekaar begin praat: “Waar het hy aan al hierdie dinge gekom? By wie het hy al hierdie kennis gekry? Om nie eens te praat van al die wonderlike dinge wat hy doen nie. Ons weet mos wie hy eintlik is. Is hy nie die houtwerker, die seun van Maria nie? Sy broers is mos Jakobus, Josef, Judas en Simon en ons ken sy susters ook goed.” Hulle wou maar net nie aanvaar dat Hy spesiaal is nie en het die neus vir Hom opgetrek. “So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.” Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie. Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel. Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie. As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie. As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi. Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.” Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!” [17-19] Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie, *** *** want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het. Herodias het haar kans gekry op Herodes se verjaarsdag. Hy het ’n groot partytjie gehou vir al die belangrike mense in Galilea. Al die hoë staatsamptenare was daar saam met die bevelvoerders van sy soldate en die leiers van die gemeenskap in Galilea. Die dogter van Herodias kom dans toe vir hulle. Sy was ’n treffer. Herodes en sy gaste was in ekstase. So meegevoer, sê Herodes vir haar: “Vra my net wat jou hart begeer en ek sal dit vir jou gee. Ek sweer, vra maar net en ek sal sorg dat jy dit kry, al is dit die helfte van wat ek besit.” Sy is toe daar weg, terug na haar ma toe: “Ma, wat moet ek vra?” Sonder om een oomblik te huiwer sê haar ma: “Vra dat hulle Johannes die Doper se kop afkap en vir jou gee.” Die dogter vlieg net daar om, terug na Herodes toe: “Ek wil Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê, en sommer dadelik, asseblief.” Die koning was uit die veld geslaan en hartseer, maar hy moes sy woord hou. Hy het mos voor al sy gaste gesweer dat hy sou doen wat sy vra. Hy stuur toe een van sy soldate om Johannes se kop te gaan haal. Die man is daar weg en het Johannes se kop in die tronk gaan afkap. Hy het dit op ’n skinkbord vir die meisie gevat, wat dit weer vir haar ma gegee het. Toe die volgelinge van Johannes dit hoor, het hulle sy liggaam gaan haal en hom behoorlik begrawe. Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ’n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het. Maar dit was omtrent soos ’n malhuis rondom Jesus. Mense het so gekom en gegaan dat Jesus-hulle nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus. Hulle is toe saam in ’n skuit na ’n plek waar hulle op hulle eie kon wees. Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom. Toe Jesus-hulle daar land, wag daar natuurlik ’n massa mense vir hulle. Dit het Jesus diep geraak. Daar staan die mense rond en hulle lyk net soos ’n klomp skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus begin toe met hulle oor God en sy dinge gesels. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?” “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.” “Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?” “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe. Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord. [39-40] Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit. *** Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die klomp mense gevra om huis toe te gaan. Hy het ook sy klein groepie getrouste volgelinge solank met die skuit vooruitgestuur na Betsaida toe. Nadat Hy alles gereël het en die mense weg was, is Hy teen die berg op om te gaan bid. Toe dit al goed donker was, was die boot mooi in die middel van die see. Jesus was alleen op die strand. Hy het gesien hoe sy dissipels swoeg met die roeiery, want die wind was teen hulle. [49-50] Toe die son sy kop begin uitsteek, stap Jesus op die water na hulle toe. Hy wou langs hulle verbystap, maar toe hulle Hom op die water sien loop, dog hulle dit is ’n spook. Hulle het hulle spierwit geskrik. Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.” *** [51-52] Hy klim toe in die boot by hulle. Daar en dan gaan die wind toe ook lê. Sy volgelinge was heeltemal uit die veld geslaan. Al het hulle gesien hoe so baie mense met so ’n bietjie kos genoeg kry om te eet, het hulle nie verstaan wie Jesus regtig is nie. Hulle kon hulle oë nie glo nie. *** Toe hulle anderkant by Gennesaret land, het hulle die skuit daar vasgemaak. Jesus het skaars uit die boot geklim of die mense het Hom herken. Die nuus dat Hy daar is, het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei. Waar Hy ook al gegaan het, het die mense siekes na Hom toe gebring. Of Hy nou in die klein plattelandse plekkies of in die groter dorpe was, die mense het daar vir Hom met hulle siekes gewag. Wanneer Hy by so ’n plek gekom het, het hulle vir Hom by die mark gewag, waar almal altyd saamgekom het. Hulle het Hom dan gesmeek en gesoebat om die siekes net toe te laat om aan Hom te raak. Dié wat aan Hom geraak het, het natuurlik almal gesond geword. ’n Klomp baie belangrike Jode uit Jerusalem kom toe na Jesus toe. Party van hulle was deel van die streng godsdienstige groep van die Fariseërs en daar was ook ’n paar wie se werk dit was om te sê hoe ’n mens die Skrif en veral die wet moes verstaan. Hulle het Jesus en sy volgelinge fyn dopgehou. Hulle sien toe dat ’n paar van sy volgelinge kos eet sonder om hulle hande te was, wat ingedruis het teen die wet van die Jode. (Daar was baie streng Joodse wette wat ’n mens moes volg om jouself rein en reg te kry om te eet. Die Jode sou nie eet voor hulle eers hulle hande gewas het nie. Hulle het dit van die ou tyd af so gedoen. Byvoorbeeld, as hulle van die winkel af kom, sal hulle niks eet voordat hulle eers hulle hande op ’n spesifieke manier gewas het nie. En dit is nie al nie. Daar is hope sulke gebruike, soos om jou koppies, bekers, panne en selfs stoele op die voorgeskrewe manier te was.) Juis daarom vra die besoekers uit Jerusalem toe vir Jesus: “Vir wat doen jou volgelinge nie wat ons mense nog al die jare doen nie? Hoekom was hulle nie hulle hande voor hulle eet nie? Nou eet hulle met hande wat nie voor God skoon is nie.” Jesus sê toe: “Jesaja was reg toe hy gesê het wat God van ’n klomp skynheilige mense soos julle dink. Daar staan geskryf: ‘God sê: Hierdie mense sê al die regte dinge voor God, maar hulle dien Hom nie uit hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde asof dit God is wat so sê, maar dit is ’n klomp reëls wat hulle sommer self uitgedink het.’ “Julle steur julle nie meer aan wat God van julle vra nie. Julle stel net belang in wat julle tradisies en voorouers sê. “Julle is goed daarmee om God se wil eenkant toe te skuif en julle eie tradisies in die plek daarvan te sit. Moses het mos gesê: ‘Respekteer jou pa en ma’ en ‘as iemand sy pa of ma slegmaak en verneder, moet hy doodgemaak word.’ Maar kyk wat het julle met Moses se woorde gemaak. Julle sê dat iemand vir sy ouers kan sê: ‘Jammer, ek het niks om vir julle te gee nie en ek kan julle ook nie help as julle hulp nodig het nie, want ek het al my goed vir die Here opsy gesit.’ Dan hoef hy niks meer met sy ouers te doen te hê of vir hulle te sorg nie. Wat God wil hê, word dus eenkant toe geskuif. Julle steur julle nie daaraan nie, maar dwing julle eie menslike tradisies op almal af en forseer hulle weer om dit vir hulle kinders te leer. En Ek kan nog baie ander sulke voorbeelde vir julle opnoem.” Toe draai Jesus na al die ander mense toe wat daar gesit het. “Luister nou mooi na My, want Ek wil nie hê julle moet My misverstaan nie. “Dit is nie wat julle eet en so in julle liggaam inneem wat julle onrein maak in God se oë nie. Nee, dit is wat by jou mond uitgaan wat jou vir God onrein maak.” *** Jesus gaan toe saam met sy paar getrouste volgelinge in die huis in. Nuuskierig vra hulle Hom toe wat Hy bedoel het. Jesus sê toe: “Sjoe, verstaan julle so min van wat Ek gesê het? Weet julle nie dat die kos wat ’n mens eet in jou maag beland en later weer uitgeskei word nie? Dit raak jou nie regtig hier diep binne-in nie en daarom maak dit nie dat God jou nie wil hê nie. (Dit beteken dat Jesus eintlik ook gesê het dat geen kos ’n mens vir God onrein en so onaanvaarbaar kan maak nie.) Wat egter diep uit ’n mens se hart kom, maak die verskil en kan maak dat God niks daarvan hou nie. Want dit is van binne af, uit wat ’n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra. Laat Ek ’n lysie maak. Ek praat van dinge soos moord, om ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees. Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.” Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is. Sonder om ’n oomblik te wag het ’n vrou met haar dogtertjie wat deur ’n bose gees gepla is na Hom toe gekom. (Sy was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is.) Sy val toe voor Hom neer en smeek Hom om die bose gees uit haar dogter te verjaag. Jesus antwoord haar toe: “Wag jou beurt af. Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van die verbondsvolk van God is nie.” “Ag, dit is waar, Here,” kom die antwoord, “maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies kos van genade wat van die volk van God se tafel afval.” “Dit is ’n goeie antwoord,” sê Jesus. “Gaan maar huis toe, want die demoon is nie meer in jou dogter nie.” Toe sy by die huis kom, kry sy haar dogter op die bed. Die demoon was weg. Van die gebied van Tirus af is Jesus verby die See van Galilea na die gebied wat Tien Stede genoem word. Hy het die pad deur Sidon gevat. Daar gekom, bring hulle ’n man na Jesus toe wat nie kon hoor nie en baie swaar gepraat het. Hulle vra toe vir Jesus om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak. Jesus vat toe die man eenkant toe, weg van al die mense af. Hy druk sy vingers in die man se ore en raak met ’n bietjie spoeg op sy vinger aan die man se tong. Jesus kyk toe op hemel toe en met ’n diep sug sê Hy vir die man: “Effata.” (Dit beteken: “Gaan oop.”) Dadelik kon die man hoor en normaal praat. Jesus vra hulle toe mooi om nie vir enigiemand daarvan te vertel nie. Maar dit het nie veel gehelp nie. Die mense kon eenvoudig nie oor al hierdie wonderlike dinge stilbly nie. “Alles wat Hy doen, is eenvoudig goed. Hy laat mense hoor wat doof was en mense wat nie kon praat nie, praat nou normaal.” Terwyl Jesus daar rond was, was daar op ’n slag weer so baie mense bymekaar. Hulle het niks by hulle gehad om te eet nie. Jesus roep toe sy getrouste volgelinge eenkant toe en sê: “Ek voel jammer en bekommerd oor die mense. Hulle is nou al drie dae hier by My en hulle het niks meer oor om te eet nie. As Ek hulle nou op ’n leë maag huis toe stuur, is Ek seker gaan party van hulle dit nie maak nie, want hulle bly baie ver.” Sy volgelinge sê toe: “Waar op aarde gaan ons hier in die grammadoelas kos kry vir so baie mense?” “Hoeveel kos het ons?” vra Jesus. “Ons het sewe brode,” kom die antwoord. Jesus vra die mense toe om almal op die grond te gaan sit. Hy het vir God dankie gesê vir die kos en die brood begin deel. Die dissipels het die stukke brood vir die mense uitgedeel. Daar was ’n paar klein vissies ook. Ook daarvoor het Jesus vir God dankie gesê en dit onder die mense uitgedeel. Die mense het geëet tot hulle genoeg gehad het. Na die tyd het die dissipels die kos wat oorgebly het, bymekaargemaak - dit was sewe houers vol. Daar was altesaam omtrent 4 000 mense. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die mense gevra om huis toe te gaan. Hy en sy getrouste volgelinge is met die skuit na die gebied van Dalmanuta toe. Daar kom Jesus toe ’n klompie godsdienstige Jode teë wat hulleself Fariseërs noem. Hulle wou met Hom kom stry. Om te kyk of Hy nie dalk iets verkeerds sal doen of sê nie, vra hulle Hom toe om vir hulle iets te doen as bewys dat God aan sy kant is. Met ’n swaar sug sê Jesus toe: “Waarom soek hierdie mense net heeltyd na iemand wat buitengewone dinge kan doen? Laat Ek nou vir julle sê: so ’n bewys gaan Ek nie vir julle gee nie.” Jesus het die stryerige Jode daar gelos, in die skuit geklim en na die ander kant van die See van Galilea gevaar. Sy volgelinge het vergeet om genoeg brood in te pak. Hulle het net een by hulle gehad. Jesus sluit toe daarby aan met ’n voorbeeld: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die godsdienstige Jode wat hulleself die Fariseërs noem en ook vir die suurdeeg van Herodes.” Die dissipels wonder toe onder mekaar waarom Jesus nou juis dit sê. “Dit is seker omdat ons nie genoeg brood saamgebring het nie,” dink hulle toe. Jesus kom toe agter wat hulle besig was om te bespreek. “Julle misgis julle heeltemal,” sê Hy. “Waarom praat julle oor die brood wat julle vergeet het? Is julle so dom dat julle nie kan verstaan wat Ek bedoel nie? Of wil julle dalk nie verstaan nie? [18-19] Julle het oë, maar sien niks nie en het ore, maar gaan soos dowes deur die lewe. Kan julle dan nie onthou hoe baie kos oorgebly het toe Ek met vyf brode vir die 5 000 mense kos gegee het nie?” “Twaalf houers vol,” antwoord hulle vinnig. *** “En toe Ek met sewe brode 4 000 mense genoeg gegee het om te eet, hoeveel kos was daar toe oor?” vra Jesus. Weer laat hulle nie op hulle wag nie: “Sewe houers vol.” Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan nog steeds nie insien dat dit nie brood is waarteen Ek julle waarsku nie?” Toe Jesus-hulle in Betsaida aankom, bring die mense ’n blinde man na Jesus toe en vra Hom baie mooi om die man gesond te maak. Jesus vat toe die man aan die hand en lei hom uit die dorpie uit. Jesus spoeg toe op die man se oë en sit sy hand op die man. “Sien jy enigiets?” vra Jesus hom. Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar net baie vaagweg. Hulle lyk amper soos bome wat rondloop.” Weer ’n keer vat Jesus aan die man se oë. Hierdie keer kon hy alles sien. Sy oë was heeltemal gesond. Jesus sê toe vir die man: “Gaan nou reguit huis toe en moenie eers in die dorp ’n draai gaan maak nie.” Jesus-hulle is van daar af na die klein dorpies rondom Sesarea-Filippi toe. Terwyl hulle op pad was, vra Jesus sy volgelinge: “Wie sê die mense is Ek?” “Hulle verskil nogal daaroor,” kom die antwoord. “Party sê U is Johannes die Doper en ander Elia. Dan is daar ’n klompie wat dink U is een van die spesiale boodskappers van God.” “Maar julle, wat sê julle van My? Wie is Ek?” vra Jesus hulle toe. Petrus sê toe: “U is Christus, die beloofde Redder.” Jesus vra hulle toe mooi om dit nie vir ander te sê nie. Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word. Jesus het niks weggesteek nie. Petrus gaan staan toe eenkant met Jesus en sê vir Hom dat Hy nie so moet praat nie. Jesus het egter omgedraai en na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad agter My, Satan!” sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie.” Jesus roep die ander mense ook na Hom en sy volgelinge toe en begin met hulle praat: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie. Om My te volg is nie altyd maklik nie. “Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te moet dra as Ek dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen. Maar vra eers vir jouself die volgende vraag: Wat help dit as al die skatte in die wêreld joune is, maar daar is nie vir jou plek by God nie? ’n Mens kan nie vir jou ’n plek by God koop met al die geld in die wêreld nie. As iemand hom vir My of my boodskap skaam voor hierdie klomp goddelose, slegte mense in die wêreld, sal Ek My vir daardie persoon skaam wanneer Ek by my wonderlike groot Vader met al sy engele is. “Ek vertel nie stories nie. Dit is die waarheid. Party van julle wat hier rondstaan, sal nie doodgaan voordat julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk waar Hy met groot mag regeer nie.” Ses dae het verbygegaan. Jesus vat toe vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg uit. Niemand anders was saam met hulle nie. Skielik, voor die oë van die drie mans, het Jesus heeltemal anders begin lyk. Sy klere het geskitter en geblink soos g’n mens dit ooit kan laat skitter of blink nie. Plotseling verskyn die ou Godsmanne, Elia en Moses, ook daar voor hulle en begin met Jesus praat. Petrus haak toe af en sê: “Here, dit is so lekker om hier te wees. Laat ons sommer drie huisies hier bou, een vir U en een elk vir Moses en Elia.” Petrus het eintlik net gebabbel, want hy was heeltemal verbouereerd. Hy het nie geweet wat om te sê nie, want hy was bang. Die skaduwee van ’n groot wolk val toe op hulle. Iemand praat toe uit die wolk: “Dit is die Seun wat Ek liefhet. Luister na Hom.” Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan. Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?” “Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.” Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer. Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe. “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus. “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie. As die bose gees hom pak, slaan hy op die grond neer. Skuim borrel dan by sy mond uit, hy byt vreeslik op sy tande en hy word stokstyf. Ek vra toe u volgelinge om die gees uit my seun te verjaag, maar hulle kon nie.” Jesus sê toe: “Julle glo darem baie swaar. Hoe lank moet Ek nog hier by julle bly voordat julle sal glo? Hoeveel geduld moet Ek nog met julle hê? Bring die seun hier.” Hulle bring toe die seun. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun op die grond neerslaan en stuiptrekkings kry. Voor almal het die seun op die grond gelê en rol terwyl skuim by sy mond uitborrel. “Hoe lank gebeur dit al met hom?” vra Jesus sy pa. “Vandat hy klein is, kry hy sulke snaakse aanvalle,” kom die antwoord. “Dan gooi die gees hom in die vuur of in die water om hom te probeer seermaak. As U ons enigsins kan help, smeek ek U, sien ons verdriet raak en help ons, asseblief!” Jesus reageer toe: “Sê jy: ‘As Ek kan’? Wel, as ’n mens vertrou, is enigiets moontlik.” Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.” Jesus sien hoe die mense van alle kante af daar begin saamdrom. Hy praat toe streng met die bose gees: “Jy, gees wat keer dat hierdie seun kan hoor of praat, Ek sê nou vir jou, gee pad uit die seun uit en moenie ooit eens weer daaraan dink om terug te kom nie.” Die gees het vreeslik gegil, die seun nog erger stuiptrekkings laat kry en is toe uit die seun uit. Die seun het doodstil bly lê. Baie mense het gedink hy is dood. Jesus vat toe sy hand en help hom op, en die seun het regop gestaan. Nadat Jesus-hulle weer by die huis ingegaan het, vra sy dissipels Hom stilletjies: “Hoekom kon ons nie van die bose gees ontslae raak nie?” Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.” Hulle is van daar af weg en is deur Galilea. Jesus wou ’n bietjie privaat saam met sy getrouste volgelinge wees. Hy wou die tyd gebruik om hulle meer te vertel en te leer wat hulle moes weet. Daarom wou Hy nie gehad het dat enigiemand moes weet dat hulle daar is nie. Hy sê toe: “Die Seun van die mens gaan aan mense uitgelewer word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy uit die dood opstaan.” Sy volgelinge het nie mooi verstaan waaroor Hy praat nie, maar hulle was te bang om Hom verder uit te vra. Toe hulle in Kapernaum by die huis aankom, vra Jesus hulle: “Waaroor het julle op pad so ernstig met mekaar gesels?” Nie een het iets gesê nie, want hulle het gestry oor wie van hulle die belangrikste was. Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.” Hy neem toe ’n kind en laat hom tussen hulle staan. Hy hou die kind vas en sê: “Wie mooi en goed optree teenoor een van hierdie kinders omdat hy in My glo, tree eintlik mooi en goed teenoor My op. En as iemand mooi en goed teenoor My optree, tree hy eintlik goed op teenoor God wat My gestuur het.” Johannes sê toe: “Here, ons het ’n vreemde persoon gesien wat sommer demone verjaag. Hy is nie een van ons nie, maar hy het u Naam gebruik om dit te doen. Ons het vir hom gesê om op te hou.” “Julle moes dit nie gedoen het nie,” sê Jesus. “’n Persoon wat die een oomblik ’n kragtige ding namens My doen, kan nie die volgende oomblik omdraai en lelik van My praat nie. Iemand wat nie ons vyand is nie, is ons vriend.” “Luister ’n bietjie hier. Al sou iemand julle net ’n bietjie water gee omdat julle Christene is, sal God vir so ’n persoon iets teruggee. En as iemand ’n Christen, al is hy hoe onbelangrik, op die verkeerde pad lei, sal God hom laat boet. Dit sal vir hom beter wees om ’n groot klip om sy nek vas te maak en in die diep see te gaan spring. Moenie dinge te ligtelik opneem nie. Ek wil dit so sterk stel: as jou hand maak dat jy dinge doen waarvan God nie hou nie, raak ontslae van jou hand. Dit is beter om sonder ’n hand vir ewig saam met God te leef as om met twee hande in die hel te beland waar ’n vuur brand wat nooit sal doodgaan nie. *** Dieselfde geld vir jou voete of oë. As jou voet veroorsaak dat jy die verkeerde pad loop, kap dit af. Gaan liewer kruppel die ewige lewe in as om met twee voete in die hel gegooi te word. *** As jou oog die hele tyd net na verkeerde dinge wil kyk, ruk dit uit. Sorg liewer dat jy deel van God se nuwe wêreld is, al is dit met net een oog, want dit is beter as om met twee oë in die hel te sit. Die Skrif sê mos: ‘In die hel gaan die wurms nooit dood nie en die vuur brand vir altyd.’ “Dit sal nie maklik wees nie. Dinge wat nie lekker is nie, sal help om mense beter Christene te maak. Sout is goed, maar as dit sy smaak verloor, wat dan? Hoe kry ’n mens dit dan weer sout? Sorg dat julle nie julle smaak in die wêreld verloor nie en leef in vrede saam.” Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel. Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?” “Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe. “Wel,” sê hulle, “Moses het gesê ’n man kan ’n brief skryf waarin hy sê dat hy van sy vrou wil skei en dan is alles verby. Sy moet dan uit die huis uit.” “Dit was omdat julle so hardkoppig en vol sonde is dat Moses dit gesê het,” antwoord Jesus toe. “Reg van die begin af het God mans en vroue gemaak. As ’n man en ’n vrou trou, gaan hy van sy ouers af weg en bly saam met sy vrou. Hulle twee is dan soos een mens. As God twee mense so aan mekaar vasgemaak het, mag niemand die band tussen hulle losmaak nie.” Toe hulle later weer saam by die huis was, het sy getrouste volgelinge Jesus gevra wat Hy daarmee bedoel het. Jesus verduidelik toe: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, is hy in God se oë ontrou aan sy eerste vrou. Net so, as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.” Op ’n keer het mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het hulle egter gekeer. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik dat sy dissipels moet ophou: “Moet nooit kindertjies keer om na My toe te kom nie. Hulle is altyd welkom by My. “Die nuwe wêreld van God is juis bedoel vir mense soos hulle. Hiervan kan julle maar seker wees: wie nie God se leiding en heerskappy aanvaar soos ’n klein kind sy pa se leiding aanvaar nie, sal nie ’n plek in God se nuwe wêreld hê nie.” Toe het Hy sy arms oopgehou sodat die kindertjies nader kon kom. Hy het hulle vasgehou, sy hand op die koppies gesit en hulle geseën. Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?” Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.” “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.” Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.” Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.” Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?” Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.” Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.” “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry. Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.” Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur. “Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.” Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, kom vra Hom toe: “Meneer, ons wil U asseblief ’n groot guns vra.” “Vra maar, laat Ek hoor,” sê Jesus. “As U eendag groot en belangrik as heerser op u troon sit, kan ons asseblief aan weerskante van U sit?” vra hulle vir Jesus. “Julle weet nie wat julle vra nie,” kom Jesus se antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie. Soos iemand wat in water gedoop word, moet Ek in lyding gedoop word. Sal julle dit kan uithou? Ek glo nie.” “Ons sien daarvoor kans,” antwoord hulle vinnig. “Dit is wel so dat julle ook die beker van smart soos Ek sal drink en soos Ek in lyding gedoop sal word,” antwoord Jesus hulle. “Maar Ek kan julle nie beloof dat julle aan weerskante van My sal kan sit nie. Dit is nie vir My om te besluit nie. God maak daardie plekke reg en Hy sal besluit wie sit waar.” Toe die res van die twaalf dit hoor, was hulle sommer die duiwel in vir Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet mos hoe dit byvoorbeeld onder die Romeine gaan. Hulle het leiers wat vir die mense sê wat moet gebeur en wat nie. Belangrike amptenare sit in die hoë poste en regeer die gewone mense van daar af. [43-44] “Onder julle as Christene mag dit egter nie gebeur nie. As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie. *** “Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.” Hulle kom toe by Jerigo aan. Jesus, sy getrouste volgelinge en ’n groot klomp ander mense was net op pad uit die dorp uit toe hulle by ’n blinde man verbyloop wat daar langs die pad gesit en bedel het. Dit was Bartimeus, die seun van Timeus. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbyloop, begin hy hard skree: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?” Baie mense het kwaai vir hom gesê om stil te bly. Maar hy het hom nie laat afsit nie en het harder geskree: “Seun van Dawid, sien my asseblief tog raak en kry my ook jammer.” Jesus gaan staan toe stil en vra: “Gaan roep daardie man, asseblief.” Hulle roep toe die blinde man en sê: “Dit is jou gelukkige dag. Kom, Jesus roep jou.” Die man gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe. “Wat wil jy hê moet Ek doen?” vra Jesus hom. “Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord. “Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond.” Die man kon dadelik sien en hy het daar en dan vir Jesus begin volg. Hulle kom toe by Betfage en Betanië teen die hange van die Olyfberg aan. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus vra toe twee van sy volgelinge: “Gaan na die dorpie toe hier voor ons. Nes julle by die dorpie inkom, sal julle ’n jong donkie kry waarop niemand nog ooit gery het nie. Maak hom los en bring hom hier. As iemand julle voorkeer en vra wat julle doen, sê vir hom: ‘Die Here het hierdie donkie nodig. Sodra Hy klaar is, sal Hy die donkie terugstuur.’” Hulle is toe daar weg en kry die donkie wat in die straat by ’n deur vasgemaak staan. Toe hulle die donkie losmaak, is daar dadelik ’n paar mense by wat wil weet wat hulle doen. Hulle sê toe wat Jesus gesê het. Die mense was tevrede en het hulle hulle gang laat gaan. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!” Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.” Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir die berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring. En as jy nie wonder of dit gaan gebeur nie, maar God totaal vertrou, sal jy dit sowaar met jou eie oë sien gebeur. Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee. “En wanneer julle bid, moet julle eers mooi dink of daar nie iemand is vir wie julle kwaad is of met wie julle vassit nie. Raak eers van al daardie slegte gevoelens ontslae sodat julle niks meer teen daardie persoon hou nie. Dan sal julle Vader in die hemel ook die verkeerde dinge oorsien wat julle doen.” *** In Jerusalem is Jesus weer reguit tempel toe. Terwyl Hy daar rondstap, kom die godsdienstige leiers van die Jode na Hom toe. “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen?” val hulle Hom aan. “Wie’t vir jou gesê jy mag dit doen?” Jesus reageer toe so: “Laat Ek julle ook ’n bietjie ’n vraag vra en as julle My kan antwoord, sal Ek vir julle sê wie My die reg gee om hierdie dinge te doen. Het God vir Johannes die Doper gestuur om te doop of het hy en ’n klompie ander mense sommer self besluit om dit te doen? Hoe dink julle?” Hulle hou toe ’n bietjie kajuitraad en besef hulle is vas. Sê hulle: “God het hom gestuur,” sal Jesus vir hulle vra waarom hulle dan nie geglo het wat Johannes gesê het nie. As hulle egter sê: “Dit was sommer die idee van mense,” is hulle in die moeilikheid by die gewone mense, want almal het geweet dat Johannes regtig iemand was wat van God af gekom het. Hulle sê toe maar vir Jesus: “Ons weet nie.” Jesus sê toe natuurlik: “Dan gaan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gegee het om hierdie dinge te doen nie.” Jesus vertel toe vir hulle verhale om hulle meer van die geestelike dinge te leer: “’n Boer het vir hom ’n pragtige wingerd aangeplant. Hy het baie druiwe geplant en ’n stewige heining omgesit. Verder het hy alles gebou wat nodig was om net daar by die wingerd wyn ook te kon maak. Hy het tot ’n plek gemaak waar ’n wag kon sit om die druiwe op te pas. In ’n stadium moes hy ver gaan reis. Hy verhuur toe sy wingerd met die ooreenkoms dat die huurders vir hom ’n deel van die druiwe-oes sou gee. Toe die oestyd kom, stuur hy een van sy werkers om sy deel van die druiwe te gaan haal. Toe die werker daar aankom, gryp die huurders hom, gee hom ’n paar taai klappe en stuur hom sonder ’n enkele druiwekorrel daar weg. Weer probeer die eienaar - hy stuur nog ’n werker. Met hom het dit nog slegter gegaan as met die vorige een. Die huurders het hom oor die kop geslaan en liederlik beledig. Nog ’n keer het die eienaar probeer, en nog ’n keer, en nog ’n keer. Maar die huurders wou niks weet nie. Hulle het van die werkers vir wie die eienaar gestuur het, aangerand en ander het hulle selfs doodgemaak. “Uiteindelik was daar nog net een oor wat hy kon stuur en dit was sy eie seun. Hy het sy seun baie liefgehad en het eers mooi daaroor gedink. ‘Hulle sal my seun darem sekerlik met groter respek behandel,’ het hy geredeneer. “Toe die seun daar opdaag, sê die huurders vir mekaar: ‘Daar kom die een aan wat hierdie grond eendag gaan erf. As ons hom doodmaak, sal daar niemand wees wat die grond kan erf nie en dan sal ons dit maklik in die hande kan kry.’ Hulle doen dit toe. Sy lyk het hulle sommer daar buite die wingerd gegooi. “Wat dink julle het die eienaar van die wingerd toe gedoen? Ja, hy het self gekom en al daardie huurders laat doodmaak. Die wingerd het hy toe vir ander gegee. Het julle nog nooit die stukkie in die Skrif gelees nie waar daar staan: ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien. Die Here self het dit gedoen, en hoe wonderlik is dit nie vir ons om te sien nie’?” Die Joodse godsdienstige leiers het toe eers planne gemaak om Jesus in die tronk te stop, want hulle het goed geweet dat die verhaal wat Jesus vertel het teen hulle gemik was. Hulle was egter versigtig vir die gewone mense. Daarom het hulle Jesus vir eers gelos en weggegaan. Na ’n rukkie stuur hulle ’n paar mans na Jesus toe. Hulle was van die godsdienstige Jode uit die Fariseërs en van die ondersteuners van Herodes. Hulle moes Jesus probeer uitlok om iets verkeerds te sê wat hulle ’n rede sou gee om Hom te laat vang. Hulle het toe so begin: “Meneer, ons weet jy leer die mense baie dinge oor God. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy gee nie om wat hierdie of daardie belangrike mense van jou sê of dink nie, want vir jou is alle mense dieselfde. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Sê vir ons, dink jy dit is reg om so baie belasting aan die keiser te betaal? Moet ons hom belasting betaal of nie, want hy is mos ’n koning van ’n vreemde land wat net ons geld wil hê?” Jesus het goed geweet dat hulle ’n klomp tweegesigte was wat Hom wou uitvang. Hy vra hulle toe sommer reguit: “Vir wat probeer julle My uitvang? Bring asseblief vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting betaal sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe vir Hom so ’n geldstuk (want daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke en ’n mens kon nie almal vir belasting gebruik nie). Jesus vra toe: “Kyk mooi na die geld; wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier geskryf?” “Die keiser s’n,” sê hulle. “Nou ja,” antwoord Jesus, “as die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Maar onthou, julle is volgens God se beeld gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hulle het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was verstom oor die slim manier waarop Jesus hierdie moeilike vrae hanteer het. Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie. Hulle kom toe ook om Jesus uit te vra. “Ons sien jy leer die mense baie dinge oor God. Nou ja, Moses het vir ons geskryf dat as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, sy broer met sy weduwee moet trou. Hy moet dan ’n seun in sy broer se plek kry om te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Sê nou daar is sewe broers in ’n familie en die eerste een sterf voordat hy ’n kind kon kry. Volgens Moses se wet moet die tweede broer nou met die vrou trou. Sê nou hulle het ook nie kinders nie. So gaan dit met al sewe die broers. Uiteindelik is die vrou ook dood, sonder dat sy ’n kind gehad het. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, met watter man gaan hierdie vrou dan in die hemel getroud wees? Hier op aarde was sy mos met al sewe getroud.” Jesus sê toe: “Dit is nou ’n dom vraag. Julle ken nie julle eie Skrif nie en julle weet nog minder hoe sterk God regtig is. As die mense eendag uit die dood weer lewendig word, sal hulle nie meer trou nie. Hulle sal op dieselfde manier bestaan as die ander hemelse wesens wat natuurlik ook nie trou nie. Dit beantwoord nou julle vraag. Maar kom ons gesels ’n bietjie verder oor mense wat uit die dood gaan opstaan. Die Skrif vertel mos hoe Moses daar gestaan het by die bos wat so gebrand het en hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is nou nog die God van Abraham, ja, die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.” ’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?” Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.” “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.” Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie. Jesus was weer in die tempel besig om mense van God te vertel. Hy vra toe vir die mense by Hom: “Hoekom sê die Joodse skrifkenners dat die beloofde Redder uit die familie van koning Dawid gaan kom? Kyk wat het die Heilige Gees Dawid in die Skrif laat skryf: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit hier op die ereplek langs My tot Ek met al jou vyande klaargespeel het en hulle magteloos voor jou lê.’ “Uit hierdie deel sien ons dat Dawid die Redder wat beloof is ‘Here’ noem. Hoe kan Hy dan terselfdertyd ook Dawid se seun wees?” Vir die groot groep mense wat daar na Hom gesit en luister het, was dit lekker om te hoor hoe Hy oor God se dinge praat. Terwyl Jesus so oor die dinge van God praat, sê Hy: “Wees baie versigtig vir die geleerde Jode wat so alles van die Skrif af weet. Hulle hou tog so daarvan om gesien te word. Hulle loop met hulle spoggerige klere rond waar die meeste mense hulle kan sien en groet almal dan kamma vriendelik. As jy hulle in die erediens soek, kyk maar net daar op die voorste plekke waar almal hulle kan sien. En as die mense ’n fees hou, hou net die belangrikste plekke dop - daar sal jy hulle kry. Maar kyk ’n bietjie wat hulle regtig doen. Hulle sal vroue wat nie mans het nie en nie mooi weet hoe dinge werk nie kul sonder om ’n oog te knip. So sal hulle die vroue se huise kry. Ai, dan bid hulle nog sulke lang gebede om mense met hulle vroomheid te beïndruk. God gaan sulke mense dubbel en dwars straf.” Jesus het toe ’n rukkie lank regoor die kollekteborde in die tempel gaan sit. Hy kyk toe wat die mense vir die tempel ingooi. Daar was ryk mense wat sommer baie geld ingegooi het. ’n Baie arm vrou, wat nie meer ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, kom gooi toe twee stukkies kopergeld in. Dit was so te sê niks werd nie. Jesus roep toe sy dissipels. “Luister nou mooi wat Ek vir julle sê. “Het julle daardie arm vrou gesien wat die twee koperstukkies ingegooi het? Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eens mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets mee te koop om te eet het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.” Terwyl Jesus-hulle so uit die tempelterrein stap, sê een van sy volgelinge vir Hom: “Here, kyk hierdie massiewe rotsblokke waarmee die tempel gebou is. Is die gebou nie pragtig nie?” “Sien julle al hierdie groot geboue?” vra Jesus. “Hulle sal tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie een klip op ’n ander een gelos word nie.” ’n Rukkie later gaan Jesus teen die hang van die Olyfberg sit. Van daar af kon ’n mens die tempel mooi sien. Omdat daar nie ander mense by hulle was nie, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom toe: “Vertel ons asseblief meer. Wanneer gaan al hierdie vreeslike dinge gebeur? Op watter manier gaan ons gewaarsku word dat die verwoesting gaan begin? Is daar tekens wat ons kan dophou?” “Julle moet versigtig wees,” sê Jesus. “Daar sal baie mense kom wat julle op ’n dwaalspoor sal wil sit en baie sal sowaar agter hulle aanloop. Hulle sal kom en sê dat hulle die redder is en my Naam daarvoor gebruik. Moenie skrik as julle hoor dat mense begin oorlog maak nie. Dit is dinge wat moet gebeur, maar dit beteken nog nie dat die einde hier is nie. Nasies sal met mekaar baklei oor wie die sterkste is en die een heerser sal die ander een probeer onderkry. Kos gaan ook met tye baie skaars word en op ander plekke sal daar aardbewings wees. Dit sal die eerste tekens wees dat die einde aan die kom is, net soos die pyne wat ’n swanger vrou kry die teken is dat die kind op pad is. “Kyk ook wat alles met julle gaan gebeur. Mense sal julle voor die hof sleep en julle voor almal verneder en slaan. Omdat julle my volgelinge is, sal julle voor die leiers van die wêreld aangekla word, maar dit sal julle die kans gee om vir hulle van My te vertel. Voordat die einde kom, moet die goeie nuus eers aan al die nasies vertel word. En as hulle julle in die tronk stop of voor die hof sleep, moenie bekommerd wees oor wat julle gaan sê nie. “Die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees. “Dit sal so sleg gaan dat ’n broer niks daarvan sal dink om sy eie broer te verraai sodat hy doodgemaak kan word nie. Pa’s sal dit ook aan hulle kinders doen. Kinders sal ook nie meer na hulle ouers wil luister nie. Hulle sal teen hulle ouers draai en nie omgee om hulle te laat doodmaak nie. Mense sal niks meer met julle te doen wil hê nie omdat julle aan My behoort. Hulle sal julle sleg behandel waar hulle kan. Maar as iemand nie aan die druk toegee nie, maar aan my kant bly staan tot die bitter einde toe, sal God hom in sy nuwe wêreld verwelkom. “Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku. “Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie; die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word. “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien. Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help. “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is. As julle hierdie dinge sien gebeur, moet dit vir julle soos die vyetakkies en blare wees: dit moet vir julle sê dat die einde om die draai is. Sowaar, dit gaan nie lank wees nie. Die mense wat ons ouderdom is, sal nog leef wanneer dit gebeur. Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie.” “Net God weet die presiese datum en tyd wanneer die einde gaan kom. Die engele weet dit nie en ook nie sy Seun nie, net Hy, want Hy is die Een wat sal besluit wanneer dit sal wees. Wees daarom wakker en op julle hoede sodat julle nie onkant gevang word nie. Julle weet mos nie wanneer die einde gaan kom nie. “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n storie. Dit is soos ’n man wat vir ’n lang ruk van sy huis af weggaan. Hy reël alles mooi. Sy werkers moet na sy huis kyk en daarom gee hy vir elke werker iets om te doen. Vir een sê hy om by die deur wag te hou. Hou goed wag, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis skielik daar instap nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja, enige tyd. As hy skielik die deur oopstoot, moet hy jou nie lekker opgekrul en vas aan die slaap kry nie. “Laat Ek dit vir elkeen weer sê en mooi beklemtoon: julle moet wakker en op die uitkyk wees, want Ek kom terug.” Die groot fees van die Jode, die paasfees, en nog ’n ander fees, naamlik die fees van die ongesuurde brood, was om die draai. Dit was nog maar twee dae voor die feestelikhede met mening sou begin. Die godsdienstige leiers van die Jode in Jerusalem het aan allerhande agterbakse planne gedink om Jesus te vang en te laat doodmaak. “Ons kan dit nie doen terwyl die mense feesvier nie, want dan het ons ’n opstand onder die mense,” het hulle geredeneer. In daardie stadium was Jesus nog in Betanië. Hy het by Simon, wat melaats was, gaan eet. ’n Vrou kom toe die eetkamer in. By haar het sy ’n potjie baie duur parfuum gehad wat van nardus gemaak was. Sy het die potjie oopgemaak en alles op Jesus uitgegooi, veral op sy hare. Van die ander mense aan tafel was baie omgekrap. Hulle het eers so onderlangs gemompel en toe vir die vrou gesê: “Hou op, hoekom mors jy die parfuum so? Ons kon dit maklik gaan verkoop en amper ’n jaar se salaris daarvoor gekry het. Dink net hoeveel arm mense kon ons met daardie geld gehelp het.” Hulle het sommer lelik met haar geraas. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.” Omtrent in daardie tyd het Judas, een van die twaalf getroue volgelinge van Jesus, besluit om teen Hom te draai. Hy is na die Joodse godsdienstige leiers toe om te hoor of hy hulle kon help om Jesus te vang. Die godsdienstige leiers was natuurlik baie bly om dit te hoor. Hulle het vir hom ’n hele klomp geld beloof as hy hulle sou help. Judas het sy kans mooi afgewag om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” [13-14] Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ *** Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe. Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.” Hardkoppig het Petrus aangehou: “Ek sal dit nooit ooit doen nie. Al maak hulle my dood, ek sal dit nie doen nie.” Die ander het almal ook so gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.” Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.” Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.” Toe Jesus by die ander drie kom, lê hulle vas aan die slaap. “Simon,” sê Jesus vir Petrus, “wat gaan aan? Slaap julle? Kon jy sowaar nie eens ’n uurtjie wakker bly om te kyk dat iemand ons nie aanval nie? Jy sal baie wakkerder moet wees as dit by versoekings kom. Vra God om jou te help om nie die verkeerde dinge te doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie.” Weer het Jesus gaan bid en dieselfde as die eerste maal gevra. Toe Hy terugkom, kry Hy die drie weer so. Hulle was so vaak dat hulle sowaar weer aan die slaap geraak het. Toe Jesus daar aankom, was hulle so skaam dat hulle nie mooi geweet het wat om vir Hom te sê nie. ’n Derde maal het Jesus gaan bid en toe Hy terugkom, sê Hy vir hulle: “Julle lê lekker en slaap asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus. Dit is nou genoeg. Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul sondige Jode gaan My netnou kom vang en dit omdat iemand My gaan verraai. Komaan, laat ons gaan. My verraaier is net hier om die draai.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang. Die mense storm op Jesus af en vang Hom. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.” Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom. [51-52] Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly. *** Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie. Baie het allerhande leuens oor Hom kom vertel, maar hulle stories het so verskil dat niemand hulle sou glo nie. Toe span ’n paar saam met ’n groot leuen: “Ons het hom hoor sê dat hy ons tempel sal afbreek waaraan ons mense so lank gebou het. In drie dae sal hy glo ’n ander bou en hy sal nie eens mense gebruik om dit te doen nie.” Maar ook dié storie was so deurmekaar dat wat die een gesê het, nie dieselfde was as wat die ander een gesê het nie. Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?” Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?” “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit. “Julle almal het dit gehoor. Hierdie man het geen ontsag vir God nie en sê dinge wat God diep seermaak. Wat dink julle van dit alles?” Soos een man het almal saamgestem en gesê dat daar nou geen kwessie meer was nie: Jesus moet doodgemaak word. Hulle spoeg toe op Hom en nadat hulle sy oë toegebind het, dam hulle Hom met die vuis by: “Toe, sê ’n bietjie wie het jou geslaan as jy kan. Jy sê mos jy is iemand wat namens God kan praat.” Die wagte het Jesus gevat en Hom baie seergemaak deur Hom te slaan. Terwyl Petrus so saam met die wagte in die agterplaas van die hoëpriester se huis gesit het, kom daar ’n meisie verby wat daar gewerk het. Toe sy by Petrus verbystap wat hom sit en warm maak by die vuur, steek sy vas en kyk mooi. “Jy is ook mos een van daardie groep mense wat agter die Nasarener, Jesus, aangeloop het,” sê sy. “Nee, ek is nie,” het Petrus dit dadelik ontken. “Ek het g’n idee waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie eens nie.” Toe staan hy op en gaan staan naby die hek. Net toe kraai die haan. Maar die meisie wou hom nie los nie. Sy sê vir die mense wat daar by die hek staan: “Ek is seker hierdie ou is een van die Nasarener se volgelinge.” Weer het Petrus dit heftig ontken. Daarna sê van die ander wat daar rondgestaan het: “Jong, jy lyk vir ons net soos een van hulle. Jy kom dan ook uit Galilea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy is: “Ek sweer ek ken nie eens hierdie man van wie julle so praat nie.” Juis toe kon ’n mens die haan ’n tweede maal hoor kraai. Petrus het dit ook gehoor en dadelik onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee maal kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy My nie eens ken nie.” Toe het hy bitterlik gehuil. Sommer vroeg die volgende môre het die Joodse godsdienstige leiers en die Joodse Raad besluit wat hulle gaan doen. Hulle het Jesus in boeie na die Romeinse goewerneur, Pilatus, toe gestuur om die saak verder te hanteer. “Is jy die koning van die Jode?” was Pilatus se eerste vraag. “Ja, wat jy sê, is waar,” kom dit van Jesus. Die leiers onder die priesters kom toe met ’n klomp stories waarmee hulle Jesus beskuldig. Pilatus vra Jesus toe weer: “Luister net wat sê hierdie mense alles van jou. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Steeds het Jesus nie ’n woord gesê nie. Pilatus kon dit nie mooi verstaan nie. Gedurende die paasfees het die Romeine gewoonlik een persoon vrygelaat wat in die tronk was. Die mense kon kies wie. Juis toe was daar ’n bende rebelle in die tronk. Een van hulle was ’n man met die naam Barabbas. Die bende het amok gemaak, die mense opgestook en selfs moord gepleeg. Die mense kom vra toe vir Pilatus wanneer hy dan soos gewoonlik ’n gevangene gaan vrylaat. “Hoe lyk dit, kan ek maar die koning van die Jode loslaat?” vra Pilatus toe. Hy was nie dom nie - hy het geweet dat die leiers van die priesters net jaloers was op Jesus en net daarom het hulle Hom kom aankla. Die priesters het niks gehou van Pilatus se voorstel nie en het die klomp mense buitekant opgesweep om te vra dat Barabbas eerder losgelaat moet word. Weer vra Pilatus hulle: “Wat moet ek dan doen met die een wat julle die koning van die Jode noem?” “Kruisig hom!” gil hulle. “Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus. Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig. Die Romeinse soldate vat Jesus toe weg na ’n soort binneplein in Pilatus se paleis. Hulle roep al die ander soldate van hulle afdeling ook. Daar het hulle vir Jesus pers klere aangetrek en ’n kroon wat hulle van dorings gevleg het, op sy kop gedruk sodat Hy kamma soos ’n koning lyk. Toe begin hulle maak asof hulle Hom soos ’n belangrike koning groet: “Bly om u te ontmoet, o koning van die Jode!” skree hulle. Weer en weer het hulle Hom met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg. Dan val hulle weer kamma op hulle knieë en maak asof hulle Jesus as ’n vreeslik belangrike persoon eer. Toe hulle uiteindelik moeg was om Jesus so te spot, trek hulle die pers klere uit en trek Jesus se eie klere weer vir Hom aan. Toe vat hulle Jesus na die plek toe waar Hy gekruisig moes word. ’n Sekere man wat oorspronklik van Sirene in Afrika af gekom het, het juis toe daar verbygestap. Hy was op pad van die platteland af dorp toe. Sy naam was Simon en sy kinders was Aleksander en Rufus. Die soldate gee hom toe sommer die kruis en sê hy moet dit na Golgota, oftewel die “Plek van die Kopbeen”, toe dra. Daar wou hulle Hom wyn wat met galbitter kruie gemeng is, gee om sy pyn so ’n bietjie te stil. Jesus wou dit nie vat nie. Toe kruisig hulle Hom. Sy klere het hulle gevat en lootjies getrek om te sien wie wat moet kry. Dit was so nege-uur in die môre toe hulle Jesus gekruisig het. Op die kennisgewing wat verduidelik het hoekom Hy gekruisig is, het gestaan: “Die koning van die Jode.” Saam met Jesus het die soldate ook twee ander mans aan kruise weerskante van Jesus opgehang. Hulle was diewe. *** Die mense wat daar verbygestap het, het hulle kop geskud. Hulle het allerhande lelike dinge vir Hom geskree en Hom gespot. “Komaan, jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en weer in drie dae sal opbou. Toe, wys nou wat in jou steek. Klim van die kruis af. Red jou eie lewe!” Die godsdienstige leiers van die Jode het net so te kere gegaan. Hulle het Jesus onder mekaar gespot: “Dit help nou veel. Ander kon hy help,” het hulle gesê, “maar nou kan hy homself nie eens uit die moeilikheid help nie. Laat ons nou ’n bietjie sien hoe die redder wat kamma die koning van Israel wil wees van die kruis afklim. Dan kan ons ook darem sien en glo.” Die twee diewe wat langs Hom gehang het, het Hom ook gespot en beledig. Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag. Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.” Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.” Al wat gebeur het, was dat Jesus hard geskree het en dood is. Net toe het die groot gordyn wat in die tempel gehang het van bo na onder in twee geskeur. ’n Bevelvoerder van die Romeinse soldate het reg voor die kruis gestaan. Hy het gehoor hoe Jesus skree en het gesien hoe Hy dood is. “Hierdie man was sowaar die Seun van God,” was al wat hy gesê het. ’n Entjie van die kruis af het ’n groepie vroue gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria (sy was Joses en Klein-Jakobus se ma) asook Salome. Dit was die vroue wat in Galilea saam met Hom gegaan en vir Hom gesorg het. By hulle was daar ook heelwat ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het. Dit het begin laat word en omdat dit Vrydag was, was die Jode besig om reg te maak vir die sabbat wat met sononder sou begin. Josef van Arimatea was ’n lid van die Joodse Raad en het baie uitgesien na die tyd wanneer God kragtig as Koning in sy nuwe wêreld sou heers. Hy het die moed bymekaargeskraap en is na Pilatus toe om te vra of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. Pilatus was verbaas om te hoor dat Jesus al dood was. Hy vra toe vir die bevelvoerder van die soldate of Jesus regtig al dood is. Dié sê toe ja. Pilatus sê toe vir Josef dat hy maar vir Jesus kon gaan begrawe. Josef het ’n groot stuk linne gekoop en nadat hy Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy die liggaam in die linnedoek toegedraai. Hy het Jesus gaan begrawe in ’n graf wat uit rots gekap was en soos ’n kamertjie gelyk het. En hy het ’n groot ronde klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, Jesus se ma, het gesien waar hy Jesus begrawe het. Toe die son sak en die sabbat verby was, het Maria Magdalena, Salome en Maria, Jakobus se ma, olie gaan koop wat lekker ruik om dit op die liggaam van Jesus te gaan gooi. Die volgende oggend vroeg, net toe die son uitkom, is hulle weg graf toe. Hulle het onder mekaar gewonder: “Wie gaan ons help om daardie groot rots voor die ingang van die graf weg te kry?” Daar gekom, kon hulle hulle oë byna nie glo nie. Die groot rots het eenkant weggerol gelê. Hulle gaan toe in die graf in wat soos ’n kamertjie gelyk het. Hulle skrik hulle byna boeglam, want daar aan hulle regterkant sit ’n jongman met spierwit klere aan. “Moenie weghardloop nie,” sê die man. “Ek weet julle is op soek na Jesus van Nasaret. Hy is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword. “Kom kyk maar hier waar hulle sy lyk neergesit het. Gaan vertel vir Petrus en sy ander volgelinge: Jesus is voor julle uit Galilea toe. Daar sal julle Hom kry soos Hy vir julle gesê het.” Die vroue draai toe om en hardloop met bewende bene so al wat hulle kan terug, want hulle het groot geskrik. Hulle het hulle monde gehou en met niemand daaroor gepraat nie, want hulle was te bang. (Tog het hulle vir Petrus en die ander kortliks vertel wat vir hulle gesê is. Daarna het Jesus self deur hulle die wonderlike boodskap oor Hom wat altyd waar sal bly, van die ooste tot in die weste laat verkondig. Hiervan kan ons seker wees.) Vroeg daardie Sondagoggend het Jesus weer lewendig geword. Maria Magdalena het Hom eerste gesien. (Dit was sy uit wie Jesus mos sewe demone verjaag het.) Sy is toe daar weg om vir die ander volgelinge van Jesus te gaan vertel. Hulle almal was nog baie hartseer oor alles wat gebeur het en het gehuil. Toe Maria vir hulle vertel dat Jesus leef en dat sy Hom gesien het, wou hulle nie ’n woord glo wat sy sê nie. ’n Rukkie later het nog twee, wat iewers in die platteland op pad was, Jesus op ’n ander manier gesien. Hulle het vir die ander gaan vertel wat gebeur het, maar dié het hulle ook nie geglo nie. ’n Ander keer was Jesus se elf getrouste volgelinge besig om te eet toe Jesus daar tussen hulle staan. Hy het ernstig met hulle daaroor gepraat dat hulle nie wil glo dat Hy lewe nie en dat hulle so hardkoppig is om nie die ander wat Hom lewendig gesien het te wil glo nie. Hy sê vir hulle: “Gaan vertel vir al die mense die goeie nuus oor My. Almal moet dit hoor. “Elkeen wat julle boodskap glo en by julle as Christene aansluit deur gedoop te word, sal gered word. Iemand wat dit nie wil glo nie, kan maar vergeet: God sal hom straf. “Dié wat glo, sal baie wonderlike dinge doen. Ek sal hulle die krag gee om demone uit mense te verjaag. Hulle sal spesiale nuwe tale kan praat en sal slange met hulle kaal hande optel. Gif en sulke dinge sal hulle ook niks kan aandoen nie. Hulle sal net aan siek mense raak en die mense sal dadelik gesond word.” Daarna is die Here Jesus terug hemel toe om by God self op ’n ereplek te sit. Sy volgelinge het die boodskap oral gaan vertel. Die Here self het hulle gehelp en het gewys dat dit waar is deur wonderlike dinge daarna te laat gebeur. Baie mense het al ’n verhaal geskryf oor al die groot dinge wat onlangs onder ons gebeur het. Hulle het gebruik gemaak van inligting wat aan ons deurgegee is deur mense wat al hierdie dinge self meegemaak het en wat God al van daardie tyd af getrou dien. Ek het besluit om ook oor al hierdie gebeure aan u te skryf, hooggeagte Teofilus. Ek verseker u dat ek deeglik navorsing oor hierdie groot verhaal gedoen het sodat ek alles reg aan u kan oorvertel, presies net soos dit gebeur het. U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is. My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.” Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.” Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.” Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry. Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. “Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek. Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.” Maria het toe gesê: “Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.” Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan. Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad. Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê. Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem. Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.” “Hoekom? Daar is dan niemand in jou familie met die naam Johannes nie,” het hulle haar verbaas gevra. “Kom ons vind uit wat Sagaria dink,” het hulle toe gesê. Hulle het met handgebare vir hom gevra hoe hy sy seun genoem wou hê. Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor. Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys. Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid. Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was. Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak: “Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur. Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen. Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid. Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham: God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe. “En jy, my seuntjie, die mense sal jou noem: ‘Boodskapper van die Allerhoogste.’ Jy sal voor die Here uitstap en sy pad gelyk maak. Jy sal vir sy volk vertel hoe hulle by God kan uitkom. Jy sal hulle leer hoe hulle sondes vergewe kan word. God is so ongelooflik goed vir ons. Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld begin skyn. Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef, ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is. God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.” Johannes het vinnig grootgeword. Die krag van die Gees was in sy lewe te sien. Hy het eenkant in die woestyn gebly tot op die dag dat hy onder die Israeliete begin preek het. In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser, ’n bevel uitgereik dat ’n sensus gehou moet word om vas te stel hoeveel mense daar in die Romeinse Ryk bly. Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan. Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol. Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!” Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys: “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.” Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.” Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook. Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het. Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het. Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen. Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê: “Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.” Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat. Maria, al hierdie dinge wat met die Kind gebeur, sal nog groot hartseer in jou eie lewe bring. Dit sal soos ’n swaard wees waarmee mense jou deurboor.” Daar was nog ’n boodskapper van die Here in die tempel. Haar naam was Anna. Sy was ’n dogter van Fanuel, ’n man uit die geslag van Aser. Anna was al baie oud. Vroeër was sy sewe jaar lank getroud. Toe haar man dood is, het sy nie weer getrou nie. Anna was nou al 84 jaar oud. Sy het gereeld na die tempel toe gekom. Dag en nag het sy God getrou gedien deur te vas en te bid. Terwyl Josef en Maria by Simeon gestaan het, het Anna na hulle toe gestap. Toe sy vir Jesus sien, het sy God dadelik geloof en vir Hom dankie gesê. Daar in die tempel was ook baie ander mense wat gebid het dat Jerusalem bevry sou word van al sy vyande. Anna het nou goeie nuus vir hulle gehad. Sy het vir hulle vertel wie hierdie Kindjie regtig is. Nadat Josef en Maria alles gedoen het wat die wet van die Here van hulle verwag het, het hulle teruggegaan Galilea toe, na hulle tuisdorp, Nasaret. Daar het Jesus sy kinderdae deurgebring. Hy het sterk geword na liggaam en na gees. God se goedheid was die hele tyd by Hom. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan. Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie. Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ’n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek. Maar hulle kon Hom nêrens tussen hulle familie en vriende kry nie. Uiteindelik moes hulle toe terugdraai Jerusalem toe om Hom daar te gaan soek. Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra. Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel. Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!” Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.” Josef en Maria het egter nie mooi verstaan wat Jesus vir hulle sê nie. Daarna het Jesus saam met sy pa en ma na Nasaret toe teruggegaan. Sy ma het alles wat gebeur het in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Jesus het vinnig grootgeword. Almal het gesien dat Hy groot insig in God se Woord het. God was vol vreugde oor Hom. Die mense ook. In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer: Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea. Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer. In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin. Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer. Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het: “Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is. Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is. Dan sal almal God se verlossing kan sien.’” ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel? Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.” Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.” Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.” ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?” “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?” Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.” Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?” Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.” Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink. Op ’n dag het Johannes vir Herodes, die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ’n hele rits ander sondes van Herodes is deur Johannes veroordeel. Herodes was woedend hieroor. Hy het Johannes laat arresteer en hom in die tronk opgesluit. Onder al die mense wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word, was daar ’n baie belangrike Man: Jesus. Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid. Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan. Die Heilige Gees het soos ’n duif na Jesus toe afgekom. ’n Stem uit die hemel het ook hardop gesê: “Jy is my Seun vir wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.” Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy ongeveer 30 jaar oud. Die meeste mense het gedink Hy was Josef se seun. Josef was weer die seun van Eli, en hy die seun van Mattat. Mattat was Levi se seun. Levi was Melgi se seun, en hy die seun van Jannai. Jannai was die seun van Josef, en hy die seun van Mattatias. Mattatias was Amos se seun. Amos was Nahum se seun, en hy die seun van Hesli. Hesli was die seun van Naggai, die seun van Mahat. Mahat was die seun van Mattatias. Hy was Semeïn se seun, en Semeïn die seun van Josek. Josek was Joda se seun. Joda was Johanan se seun. Johanan was Resa se seun, en hy die seun van Serubbabel, die seun van Sealtiël. Sealtiël was die seun van Neri. Neri was Melgi se seun. Melgi was Addi se seun, en hy die seun van Kosam. Kosam was Elmadam se seun. Hy was Er se seun, en Er die seun van Josua. Josua was Eliëser se seun. Hy was die seun van Jorim, en Jorim die seun van Mattat. Mattat was die seun van Levi. Levi was die seun van Simeon, die seun van Juda. Juda was die seun van Josef, en hy die seun van Jonam. Jonam was Eljakim se seun. Eljakim was Melea se seun, en hy die seun van Menna, die seun van Mattata. Mattata was die seun van Natan, die seun van Dawid. Dawid was Isai se seun. Isai was die seun van Obed, en Obed die seun van Boas. Boas was Sala se seun, en hy die seun van Nagson. Hy was weer die seun van Amminadab, die seun van Admin. Admin was Arni se seun, en hy die seun van Gesron. Gesron was Peres se seun. Peres was Juda se seun, en hy die seun van Jakob. Jakob was Isak se seun, en hy die seun van Abraham, die seun van Tera. Tera was die seun van Nahor, en hy die seun van Serug, die seun van Rehu. Rehu was Peleg se seun. Peleg was die seun van Heber, die seun van Sala. Hy was die seun van Kenan, die seun van Arpagsad, en hy die seun van Sem. Sem was Noag se seun, en hy die seun van Lameg. Lameg was Metusalag se seun, en hy die seun van Henog, die seun van Jered. Jered was Mahalalel se seun, en hy die seun van Kenan, die seun van Enos. Enos was die seun van Set. Set was die seun van Adam. En Adam was natuurlik die seun van God. Jesus was vol van die krag van die Heilige Gees toe Hy van die Jordaanrivier af teruggekom het. Die Gees het Hom toe na die woestyn toe gelei. Daar het die duiwel Hom ingewag. Veertig dae lank het hy Hom getreiter met allerhande versoekings. Gedurende daardie tyd het Jesus niks te ete gehad nie. Toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het hierdie kans aangegryp en vir Jesus gesê: “Jy sê mos jy is die Seun van God. Wys dit nou ’n slag! Sê ’n bietjie vir hierdie klip om in brood te verander.” Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan in die Bybel: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. God se Woord is belangriker as kos.’” Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.” Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’ En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad. Op ’n dag het Jesus na Nasaret toe gegaan waar Hy grootgeword het. Oudergewoonte het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees: “Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.” Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.” Toe die mense in die sinagoge hoor wat Jesus sê, het hulle ontplof van woede. Hulle het opgespring en Jesus hardhandig uit die dorp verwilder. Hulle het Hom na ’n kloof toe gevat op die kant van die berg waarop Nasaret gebou was. Daar wou hulle Hom afgooi. Maar Jesus het eenvoudig tussen hulle deurgestap en uit Nasaret padgegee. Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde. In die sinagoge was daar ’n man wat in die mag van ’n duiwel was. Toe hy naby Jesus kom, het die duiwel hom skielik hard laat skree: “Wat het ons met Jou te doen, Jesus van Nasaret? Los ons uit! Dink Jy miskien dat Jy ons kan kom vernietig? Ek weet baie goed wie Jy is: Jy is daardie man wat van God af kom!” Jesus het die duiwel dadelik stilgemaak: “Bly stil! Gee pad uit die man uit!” Die duiwel het die man toe op die grond neergegooi en padgegee. Gelukkig het hy nie seergekry nie. Almal wat dit gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het onder mekaar begin praat en gesê: “Wie is hierdie man dat hy met ’n enkele woord sulke groot dinge kan laat gebeur? Hy sê net vir die duiwels om pad te gee, dan doen hulle dit!” Kort voor lank was Jesus groot nuus. Almal in daardie omgewing het van Hom gehoor. Almal was aan die praat oor al die groot dinge wat Jesus doen. Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra. Hy het toe by haar bed gaan staan en vir die koors gesê: “Gee pad uit haar liggaam uit. Nou dadelik!” Daar op die plek het Simon se skoonma gesond geword. Sy het dadelik uit die bed opgestaan en vir almal kos gemaak. Toe dit aand word, het baie mense hulle siekes na Jesus toe gebring. Jesus het hulle een vir een aangeraak. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle almal gesond gemaak. Jesus het ook ’n hele klomp duiwels uit mense verdryf. Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle beveel om stil te bly. Die bose magte het baie goed geweet dat Hy die Messias is, die Een wat deur God gestuur is om mense te kom verlos. Maar Jesus wou nie hê dat die duiwels moes sê wie Hy is nie. Hy wou dit self doen, op sy eie manier. Die volgende oggend toe dit lig word, het Jesus na ’n verlate plek toe vertrek om ’n bietjie alleen te wees. Die skare het agtergekom dat Hy weg is. Hulle het oral in die omgewing na Hom begin soek. Uiteindelik het hulle Jesus opgespoor. ’n Groot klomp mense het op Hom toegesak. Jesus kon amper nie beweeg nie, so baie mense was daar. Hy het vir hulle gesê: “Ek kan nie net vir julle preek nie. Ek moet die goeie nuus oor God se nuwe wêreld nog in baie ander plekke gaan bekendmaak. Dit is waarvoor God My gestuur het.” Jesus het in die verskillende sinagoges van die Jode gepreek. Op ’n dag het Jesus by die See van Galilea gepreek. Daar was so ’n groot klomp mense dat hulle mekaar omtrent vertrap het om Hom behoorlik te kon sien. Jesus maak toe ’n plan. Hy het gesien dat twee vissersbote teen die kant van die see vasgemeer lê. Die vissermanne het pas uit hulle bote geklim en was besig om hulle nette skoon te maak. Jesus gaan klim toe in Simon se boot en vra hom om ’n entjie van die kant af weg te vaar. Hy het in die boot gaan sit en van daar af met die skare gepraat. Later, toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vat die boot dieper in die see in en gooi dan weer julle visnette in.” Simon antwoord toe: “Ons het die hele nag op die see deurgebring en ons het net mooi niks gevang nie. Maar omdat U so sê, sal ek my visnette weer ’n keer laat sak!” So gesê, so gedaan. Skaars het Simon sy nette ingegooi of hulle was propvol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur. “Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het. Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.” Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs. Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp. Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.” ’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword. In een van die dorpe in Galilea waar Jesus aangedoen het, was daar ’n melaatse. Melaatsheid was ’n velsiekte wat veroorsaak het dat mense eenkant moes gaan bly. Toe hy vir Jesus sien, het hy laag voor Hom op die grond gebuig. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees. Dan kan ek weer ’n gewone lewe lei; ek sal weer vriende hê en in die tempel kan gaan aanbid.” Jesus sit toe sy hand op die melaatse en sê vir hom: “Ek wil dit graag doen. Word gesond. Nou dadelik!” Net daar het die velsiekte aan die man se lyf verdwyn. Sy vel was glad en skoon. Hy was heeltemal gesond. Jesus sê toe vir hom: “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe. Wys vir hom dat jy gesond is. Nadat hy gesien het dat jou vel weer normaal is, moet jy die offer bring wat Moses voorgeskryf het vir mense wat gesond geword het. So sal almal kan sien wat met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as al jou woorde.” Die nuus oor Jesus het soos ’n veldbrand versprei. ’n Groot massa het na Hom toe gestroom om te hoor wat Hy sê en om gesond gemaak te word. Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid. Op ’n dag was Jesus weer besig om die mense te leer. Baie godsdienstige leiers het ook kom luister na wat Hy te sê gehad het. Fariseërs en kenners van die wet van Moses van oor die hele Galilea en Judea, selfs uit Jerusalem, was in die gehoor. Deur die krag van die Here het Jesus baie siekes gesond gemaak. Intussen het daar ’n klompie mense aangekom wat ’n verlamde man op ’n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ’n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus. Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.” Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.” Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder? Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik. Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.” Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.” Die man het nie ’n oomblik gehuiwer nie. Voor almal het hy opgestaan, sy draagbaar gevat en na sy huis toe gestap. Hy het God hardop geloof en geprys. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle is met groot respek vir God vervul. “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik God is,” het hulle vir mekaar gesê. Van daar af het Jesus verder gestap tot by die kantoor van ’n man wat belasting ingevorder het. Sy naam was Levi. Toe Jesus vir Levi daar by sy kantoor sien sit, sê Hy vir hom: “Volg My!” Levi het nie op hom laat wag nie. Hy het alles waarmee hy besig was net so gelos en saam met Jesus gestap. Van daar af is hulle na Levi se huis toe. Levi het gou ’n groot klomp van sy vriende vir ete oorgenooi. Hy was so bly oor wat met hom gebeur het dat hy voor almal vir Jesus wou dankie sê. ’n Groot groep tollenaars en ’n klomp ander mense saam met wie die godsdienstige leiers nooit aan ’n tafel gesien wou wees nie, het toe saam met Jesus en Levi kom feesvier. Die godsdienstige leiers het gesien dat Jesus saam met al hierdie mense aan tafel sit. Hulle was baie geskok daaroor. Hulle het toe vir sy dissipels gevra: “Hoe kry julle dit reg om saam met ’n klomp skelms en sondaars te eet en te drink? Julle weet mos dat rein mense nie saam met onrein mense mag eet nie.” Jesus het gehoor wat hulle vir sy dissipels sê. Hy antwoord hulle toe: “Wat dink julle is dokters se werk? Moet hulle heeltyd gesonde mense oppas? Of moet hulle siek mense help? Julle weet mos wat die antwoord is: dokters is daar vir siek mense. Wel, Ek ook. Dis nie my werk om mense wat klaar aan God gehoorsaam is, weer ’n keer na Hom toe te lei nie. Ek het gekom om mense wat glad nie in Hom glo nie se oë oop te maak.” Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Jy moet net sien hoe toegewyd al Johannes die Doper se volgelinge is. Hulle is so ernstig in hulle godsdiens dat hulle lang tye niks eet nie. Hulle vas en bid gereeld. Die Fariseërs doen dit ook. Maar jou dissipels steur hulle glad nie daaraan nie. Hulle eet en drink net die hele tyd.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle het nie die vaagste idee waaroor godsdiens regtig gaan nie. Kyk, as mense by ’n troue is, staan hulle mos nie met lang gesigte en huil nie. Hulle vier dan fees, nie waar nie? Dan eet en drink hulle omdat hulle saam met die bruidegom bly is. Later, as die troue verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan. Dan sal hulle weer vas. “Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel met ’n voorbeeld: as iemand ’n gat in ’n ou stuk klere wil regmaak, lap hy dit mos nie met nuwe materiaal wat baie sal krimp nie. Met die eerste was gaan die nuwe materiaal krimp en dan kom daar ’n yslike gat in die ou klere. “Nog ’n voorbeeld: ’n mens gooi ook nie nuwe wyn in ou, verweerde sakke nie. Anders skeur die sakke en dan loop al die wyn uit. Nee, ’n mens sit nuwe wyn in nuwe sakke. Dan kan dit goed verouder. Mense wat sulke goeie wyn gedrink het, wil dan glad nie weer ander wyn drink nie. ” Een sabbatdag het Jesus deur ’n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword. Hulle het toe van die ryp koringare afgepluk, die kaf gou uitgevryf en die koring geëet. ’n Paar Fariseërs wat hulle soos valke dopgehou het, het dit dadelik raakgesien. “En wat is hier aan die gang?” wou hulle weet. “Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Onthou julle nie wat Dawid en sy manne gedoen het toe hulle honger geword het nie? Het julle vergeet hoe hy die reëls oortree het deur in die huis van God in te gaan en van die brood op die altaar te vat en te eet wat spesiaal vir God opsy gesit is? Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Wel, nou is Ek, die Seun van die mens, hier by julle. En Ek is baie belangriker as die sabbat. Ek sê nou wat op die sabbat gedoen mag word en wat nie.” Op ’n ander sabbatdag het Jesus na ’n Joodse sinagoge toe gegaan waar die mense bymekaargekom het om God te dien. Hy het hulle daar geleer. Daar was ’n man wie se regterhand heeltemal misvorm was. Dit was ineengetrek sodat hy dit glad nie kon gebruik nie. Die skrifkenners en die Fariseërs het Jesus fyn dopgehou. Hulle wou sien of Hy dit sou waag om iemand op die sabbat gesond te maak sodat hulle Hom kon aankla dat Hy God se wet oortree. Jesus het geweet hulle hou Hom dop, maar Hy het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het vir die man met die misvormde hand gesê: “Kom staan hier!” Die man het dadelik opgestaan en na Jesus toe gekom. Toe vra Jesus vir die godsdienstige leiers: “Sê ’n bietjie vir My: Moet ’n mens op die sabbat goed doen, of moet ’n mens slegte dinge doen? Moet ’n mens iemand anders se lewe red, of moet jy hom doodmaak?” Jesus het om Hom gekyk, maar niemand het dit gewaag om iets te antwoord nie. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen. Dit was gesond, so goed soos nuut. Die godsdienstige leiers was briesend daaroor. Dadelik het hulle begin planne maak hoe hulle van Hom ontslae kon raak. Kort daarna het Jesus een aand teen ’n berg opgeklim om te gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Die volgende dag het Jesus sy volgelinge na Hom toe geroep. Hy het toe twaalf van hulle uitgekies. Hierdie twaalf mans het Jesus sy apostels genoem, sy spesiale verteenwoordigers. Hulle name is: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem), Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai). Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie. “Daar wag groot probleme op julle wat julle nou vol eet. In God se nuwe wêreld sal daar nie vir julle plek wees nie. Julle sal buite staan en honger ly. “Daar wag groot probleme op julle wat dink dat die lewe een groot gefuif is. Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal julle verskriklik huil, want julle sal moet buite bly. “Daar wag groot probleme op julle wanneer mense heeltyd net mooi dinge oor julle moet sê. Onthou: in die ou dae het die mense ook mooi dinge oor al die vals boodskappers van die Here te sê gehad.” “Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap. “As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.” “Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom. “As jy blind is, kan jy nie ’n ander blinde rondlei nie. Kort voor lank val julle albei in ’n sloot. “’n Leerling is nooit belangriker as sy onderwyser nie. As hy alles weet wat sy onderwyser hom geleer het, weet hulle ewe veel. Ken daarom jou plek voor God en ander. Wees nederig. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir daardie groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou-gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.” “’n Goeie boom dra nooit slegte vrugte nie. En ’n slegte boom dra ook nooit goeie vrugte nie. ’n Mens ken ’n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ’n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ’n spul doringtakke nie. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan. “Julle praat so maklik. Kyk net hoe graag sê julle: ‘Here, ons Here,’ maar julle doen net mooi niks wat Ek vir julle sê nie. “Mense wat luister na wat Ek sê en dit doen, is verstandig. Hulle is soos ’n man wat op ’n dag ’n huis begin bou het. Hierdie man het sy huis se fondament baie diep uitgegrawe tot in die rots. Sy huis was skaars klaar toe breek daar ’n groot storm los. Dit het net gereën en gereën. Kort voor lank het ’n massa vloedwater teen sy huis opgedam, maar dit het geen skade aan sy huis aangerig nie. Die huis se fondament was daarvoor veels te sterk. Dit was op rots gebou. So is mense wat doen wat Ek sê. “Aan die ander kant: mense wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie, is soos ’n ander man wat sy huis sommer vinnig aanmekaargeslaan het, sonder ’n behoorlike fondament. Toe die storm daardie huis tref, het al die stormwater dit in ’n paar oomblikke uitmekaargeruk. Daar het net mooi niks van sy nuwe huis oorgebly nie. So sal dit met almal gaan wat nie doen wat Ek sê nie.” Toe Jesus die mense klaar geleer het, het Hy weer na Kapernaum toe gegaan. Daar was ’n belangrike offisier in die Romeinse leër. Sy werker was baie siek. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou doodgaan. Toe die offisier hoor dat Jesus in die dorp is, het hy gou ’n paar van die Joodse leiers in Kapernaum gevra om na Jesus toe te gaan. “Vra Hom om na my huis toe te kom en my werker gesond te maak,” het die offisier gesê. Toe die mans by Jesus kom, het hulle Hom vertel wat aan die gang was en Hom gesmeek om na die Romeinse offisier se huis toe te gaan. “Weet U, hy is ’n wonderlike man. As daar nou een persoon is wat ’n wonderwerk verdien, is dit daardie Romeinse offisier. Hy beteken so baie vir ons mense. Hy het selfs ons sinagoge hier in Kapernaum vir ons gebou,” het hulle vir Jesus gesê. Jesus het ingestem en saam met hulle gegaan. Toe hulle so ’n entjie van die offisier se huis af was, het hy van sy vriende na Jesus toe gestuur om vir Hom te sê: “Here, moet asseblief nie die moeite doen om verder te loop nie. Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond. “U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!” Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het. Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe. Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by. Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood. Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.” Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!” Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea. Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” [20-21] Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. *** Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.” Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’ “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.” Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles. “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’ “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’ “Ja, al wat hierdie mense doen, is om fout te vind. Maar gelukkig sal diegene wat doen wat God vra, weet wat die waarheid is.” Op ’n dag het ’n Fariseër met die naam Simon vir Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Daar aangekom, het Jesus saam met Simon en ’n paar ander mans by die tafel gaan aansit. In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus. Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf. Simon was baie ontsteld oor wat hierdie vrou in sy huis aangevang het. Hy het goed geweet wie sy was. Hy dink toe in die stilligheid by homself: “As hierdie Jesus regtig ’n boodskapper van God is, sal Hy mos weet dat dié vrou wat nou aan Hom raak ’n groot sondaar is. Dan sal Hy haar wegjaag, want sy is besig om Hom onrein te maak.” Jesus het baie goed geweet wat Simon dink. Hy sê toe vir hom: “Simon, daar is iets wat Ek graag vir jou wil vertel.” “Praat maar. U is mos die leermeester. Ek luister,” het Simon geantwoord. Jesus vertel toe vir hom ’n kort verhaaltjie: “Twee mans het geld aan ’n bankbestuurder geskuld; die een 80 000 rand, en die ander 8 000 rand. Maar hulle kon nie hulle skuld betaal nie. Toe besluit die bestuurder na ’n ruk om hulle skuld af te skryf. Sê vir My: Wie van hierdie twee mans was die blyste? Wat dink jy?” “Die een wat die meeste geld geskuld het,” het Simon geantwoord. “Jy is heeltemal reg,” het Jesus gesê. Toe draai Jesus na die vrou toe terwyl Hy nog met Simon praat. “Simon, jy het gesien wat hierdie vrou alles vir My gedoen het. Baie meer as jy. Jy het nie eens die moeite gedoen om water by jou deur neer te sit sodat die stof van my voete afgewas kon word toe Ek hier aangekom het nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. “Jy het My ook nie baie hartlik ontvang nie, nie eens ’n warm handdruk of ’n vriendelike omhelsing gegee nie. Maar hierdie vrou kon nie ophou om my voete te soen nie. “Jy het ook nie ’n geskenk vir My gehad nie, nie eens ’n bietjie reukolie wat Ek aan my hare kon sit om lekker te ruik nie. Maar hierdie vrou het sommer ’n hele bottel reukolie oor my voete uitgegooi. “Ja, hierdie vrou het baie lelike dinge aangevang. Maar dis nou verby. Haar sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie. Daarom doen sy al hierdie wonderlike dinge vir My. Jy het nie die vaagste idee wat dit vir ’n sondaar soos sy beteken om deur God vergewe te word nie. Daarom dien jy Hom so halfhartig.” Jesus kyk toe na die vrou en sê vir haar: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jou sondes tel nie meer by God nie.” Al die ander mense aan tafel het onder mekaar gesê: “Wie is hierdie man dat hy selfs die mag het om sondes te vergewe? Net God kan tog so iets doen!” Jesus het vir die vrou gesê: “Dit wat jy vandag gedoen het, wys dat jy in God glo. Jou saak met Hom is nou in orde. Gaan leef in vrede met God.” Jesus het daarna deur al die dorpe en klein plekkies gestap waar mense gebly het, en vir hulle die goeie nuus vertel dat God se nuwe wêreld hier is. Die twaalf dissipels het oral saam met Hom gegaan. ’n Klompie vroue wat deur Jesus van bose geeste vrygemaak is en ’n paar ander wat deur Hom gesond gemaak is, het ook saam met hulle van plek tot plek gestap. Een van hierdie vroue se naam was Maria. (Sy is ook Magdalena genoem omdat sy van die dorp Magdala afkomstig was.) Jesus het sewe duiwels uit haar verdryf. Johanna, die vrou van Gusa, een van die belangrike amptenare in Herodes se paleis, was ook onder hulle. So ook Susanna en ’n klompie ander vroue. Met hulle eie geld het hierdie vroue vir Jesus en sy dissipels kos gekoop en ook gesorg dat hulle slaapplek het. ’n Groot klomp mense het van oral af na Jesus toe gestroom. Hy het toe vir hulle die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad oor die grond uitgestrooi. ’n Deel van die saad het toe op die voetpad beland wat deur die land loop. Dit is deur mense stukkend getrap. Die voëls het toe haastig daarop toegesak en alles opgeëet. Van die ander saad het op die groot klippe in die land geval. In die holtes van hierdie klippe was daar ’n bietjie grond. Die saad wat hier beland het, het vinnig opgekom, maar die plantjies kon nie behoorlik wortelskiet in die vlak grond nie. Daarom het die son hulle gou doodgebrand. Van die ander saad wat die boer gesaai het, het tussen die doringbosse beland wat in die land gegroei het. Soos die doringbosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Dit het goed gegroei en ’n groot oes gegee wat die boer se stoutste verwagtings oortref het. “Julle moet julle ore oopmaak en luister na wat Ek vir julle sê,” sê Jesus toe vir die mense. Toe vra sy dissipels Hom: “Wat beteken hierdie verhaal wat U nou vir ons vertel het?” Jesus sê toe vir hulle: “As julle mooi na al my verhale luister, sal julle sommer baie oor God leer. Dan sal julle agterkom hoe dinge in sy splinternuwe wêreld werk. Julle sal dinge hoor wat julle nog nie geweet het nie. Maar daardie mense wat nie wil luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld vertel nie, sal dit nooit verstaan nie. Vir hulle is my verhale maar net ’n klomp leë stories. Hulle kyk, maar sien nie. En hulle hoor, maar begryp niks nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan: Die saad... Dit is die boodskap oor God se nuwe wêreld. “Die saad wat op die voetpad geval het... Wel, dit is die mense wat na die boodskap oor God se nuwe wêreld luister, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Die duiwel sorg dat hulle baie gou vergeet wat hulle gehoor het sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Net soos die voëls met die saad gedoen het, kom ‘pik’ die duiwel die goeie saad uit hulle gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die groot klippe geval... Wel, party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net vir ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle vra, sodra hulle moet nee sê vir die sonde, is hulle skielik nie meer so opgewonde nie. Dan is hulle sogenaamde nuwe geloof ook daarmee heen. “Ander saad het tussen die doringbosse beland... Dit is daardie mense wat God se woord aanvaar. Maar kort voor lank word die eise van hierdie wêreld vir hulle belangriker as hulle geloof. Bo en behalwe al hulle bekommernisse, kry die alewige gejaag na geld en plesier dan voorkeur in hulle lewens. Dan het hulle later niks meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Al hierdie dinge verdring hulle geloof uit hulle lewens uit. “En dan die saad wat in die goeie grond geval het... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.” Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan. “’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees. “Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.” Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar aankom. Hulle wou iets vir Hom sê. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Iemand het hulle herken en gou vir Jesus gaan sê: “U ma en broers is daar buite. Hulle wil graag met U praat.” Jesus sê toe: “Weet julle wie regtig my familie is? Almal wat luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld sê, en dit gaan doen. Hulle is my ma, my broers, my susters.” Op ’n dag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan daar na die oorkant van die See van Galilea toe.” Hulle almal het toe in ’n boot geklim en na die oorkant toe begin vaar. Jesus het rustig in die boot gaan lê en aan die slaap geraak. Later het ’n groot storm op die see opgesteek. Die wind het kwaai begin waai en die see het skielik baie onstuimig geword. Kort voor lank het groot golwe oor die boot geslaan sodat dit vol water begin word het. Later het die dissipels gedink die boot gaan sink. Toe hulle rondkyk waar Jesus is, kom hulle agter Hy lê nog vas aan die slaap. Baie benoud het hulle Hom wakker geskud: “Here, Here, word wakker! Ons is besig om te vergaan en U lê en slaap! Kom help ons!” Jesus het opgestaan en vir die wind en die woeste golwe gesê: “Bedaar! Hou op met waai!” Hy het ook vir die water gesê om kalm te word. En toe, skielik, was alles oor. Die wind het bedaar en die see was weer spieëlglad. Alles was doodstil. Toe draai Jesus na sy dissipels en vra vir hulle: “Waar is julle geloof heen?” Maar hulle was te bang en te verbaas om enigiets te sê. Hulle het onderlangs vir mekaar gefluister: “Wat ’n ongelooflike wonderwerk! Wie is Jesus regtig? Hy gee net ’n bevel, dan luister selfs die wind en die water na Hom.” Daarna het hulle met die boot in die rigting van die land van die Geraseners, aan die oorkant van Galilea, geseil. Daar aangekom, het ’n man sonder ’n draad klere aan vinnig op Jesus afgestap. Hy was al ’n lang tyd in die mag van ’n klomp duiwels; daarom dat hy nie meer klere gedra het nie. Hy het sommer daar buite tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie arme man omtrent verrinneweer. Baiekeer het hulle hom soos ’n mal mens laat rondhardloop en skree. Ander mense het tevergeefs probeer om hom in toom te hou. Hulle het sy hande met swaar kettings vasgebind en dik boeie om sy voete gesit, maar hy het dit gebreek en dan weggehardloop. Later het hy omtrent heeltyd in die woestyn rondgeswerf. [28-29] Toe hierdie man naby Jesus kom, het hy skielik aan die skree gegaan en op die grond neergeval. Hy roep toe kliphard uit: “Vir wat kom U hier na my toe, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek smeek U: moet my asseblief nie seermaak nie.” *** Toe vra Jesus vir die man: “Wat is jou naam?” “Legio,” het hy geantwoord. (Dit was die naam wat die mense hom gegee het omdat daar so baie duiwels in hom gebly het.) Toe begin die duiwels wat binne-in hom was Jesus smeek om hulle nie terug te stuur na die onderwêreld toe nie. Hulle vra toe of Hy hulle nie liewer in die groot trop varke wou instuur wat daar naby hulle op die berg gewei het nie. Jesus het ingestem. Daar en dan het die duiwels uit die man padgegee en in die varke ingevaar. Toe breek daar chaos los. Die hele trop varke het skielik oor die kant van die berg gestorm en in die see geval. Daar het hulle almal verdrink. Die mans wat die varke opgepas het, het hulle morsdood geskrik toe hulle sien wat gebeur. Hulle het dadelik teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle gehardloop het, het hulle vir almal langs die pad vertel wat gebeur het. Kort voor lank was almal in rep en roer. ’n Klomp mense het vinnig na die plek toe gekom waar Jesus die duiwels uit die man verjaag het. Hulle wou sien wat aan die gang was. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was aan Jesus se voete sit. Hy het klere aangehad en rustig geluister na wat Jesus sê. Toe het die mense bang geword. Terwyl hulle so staan en kyk, het diegene wat gesien het wat gebeur opgewonde vir hulle vertel hoe Jesus die duiwels uit die man verdryf het. Die mense van Gerasa het toe vir Jesus gevra om liewer pad te gee. Hulle was baie bang en het nie kans gesien dat nog sulke dinge daar by hulle gebeur nie. Jesus het toe in die boot geklim en teruggegaan na die oorkant toe. Net voordat Jesus vertrek het, het die man uit wie Hy die duiwels verdryf het Hom gevra of hy nie by Hom kon bly nie. Jesus het gesê: “Gaan terug na jou eie mense toe en vertel hulle watter wonderlike dinge God vir jou gedoen het.” Daarna het die man vir almal in sy dorp gaan vertel watter wonderlike dinge Jesus vir hom gedoen het. Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien. ’n Man met die naam Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge waar die Jode God aanbid het, het haastig tussen die mense deurgevleg en voor Jesus op die grond kom neerval. Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.” “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.” Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, kom daar iemand van die huis van die hoof van die sinagoge af en sê vir hom: “Ek het baie slegte nuus: jou dogter is nou net dood. Los maar die Leermeester uit. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.” Maar Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir die hoof van die sinagoge: “Moenie jou ontstel nie. Hou maar net aan glo. Jou dogter sal regkom.” Toe Jesus daar by sy huis aankom, het Hy vir die mense wat saam met Hom gestap het, gesê om buite te wag. Hy het net vir Petrus, Johannes en Jakobus toegelaat om saam met Hom na die dogter toe gaan; ook haar pa en ma. Toe Jesus in die huis kom, was almal aan die huil. Hy sê toe vir hulle: “Toemaar, dis nie nodig om te huil nie. Die dogtertjie is glad nie dood nie. Sy slaap maar net.” Die mense het Jesus uitgelag: “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ons het met ons eie oë gesien sy is dood.” Maar Jesus het hulle geïgnoreer en na die dogtertjie toe gestap. Hy het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op! Word lewendig!” Dadelik het die lewe in haar teruggekom. Sy het opgestaan. Toe sê Jesus vir die omstanders: “Gee vir haar iets om te eet.” Haar ouers was stom van verbasing oor wat gebeur het. Maar Jesus wou nie hê dat hulle vir ander mense daarvan moes vertel nie. Kort daarna het Jesus sy twaalf dissipels bymekaargeroep. Hy sê toe vir hulle: “Ek maak julle nou sterker as al die bose magte. Ek gee ook aan julle die krag om siekes gesond te maak. Gaan dan nou uit en vertel vir die mense dat God se nuwe wêreld hier is. Maak ook die siekes gesond.” Jesus het ook vir die dissipels vertel presies hoe hulle te werk moet gaan. “Moenie ’n groot tas saamvat, of ’n klomp padkos of ’n dik beursie vol geld nie. Een stel klere is meer as genoeg. “Wanneer julle in ’n huis goed ontvang word, bly daar oor totdat dit tyd is dat julle na ’n volgende plek toe moet gaan. Maar as die mense julle nie vriendelik ontvang nie, gee dadelik pad. Moenie verder sukkel nie. Gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers in die openbaar al die stof van daardie dorp uit julle klere uit. So wys julle dat hulle hulle kans verspeel het om deel te word van God se nuwe wêreld.” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het. Hulle het van dorp tot dorp vir die mense van God se nuwe wêreld gaan vertel en die siekes gesond gemaak. Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.” Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.” Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.” Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!” Intussen het die twaalf dissipels van Jesus teruggekeer van hulle sending en opgewonde vir Hom kom vertel van alles wat hulle gedoen het. Toe sê Hy vir hulle: “Kom saam met My daar na die omgewing van Betsaida toe. Ek wil graag ’n bietjie alleen wees.” Die mense het gou uitgevind waar Jesus is en het soontoe gestroom. Jesus het hulle vriendelik ontvang en met hulle gepraat oor God se nuwe wêreld. Hy het ook al die siekes tussen hulle gesond gemaak. Later die middag toe dit begin donker word, het die dissipels Jesus eenkant toe geroep en vir Hom gesê: “U moet asseblief nou klaar praat. Stuur die mense weg om vir hulle iewers in die omgewing ’n slaapplek en iets te ete te kry. Ons is hier tussen niks en nêrens. Hier is nie kos of blyplek vir hulle nie.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” “Wat? Dis onmoontlik,” het hulle almal tegelyk geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse vir ons en vir U saamgebring. Dis al! Ons sal iewers moet gaan kos koop vir hierdie groot skare.” Net die mans alleen in die skare was by die 5 000. “Laat die mense gou in groepe van 50 sit,” het Jesus gesê. Die dissipels het dadelik aan die werk gespring en die skare in groepe laat sit. Toe almal ’n sitplek gehad het, vat Jesus die vyf brode en die twee visse, sê vir God daarvoor dankie, spreek sy seën daaroor uit en begin dit in kleiner stukkies breek. Hy het dit aan die dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het genoeg te ete gekry. Op die ou end was daar te veel kos. Na die tyd is twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het. Daarna het Jesus alleen gaan bid. Net die twaalf dissipels was by Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wie sê hulle is Ek?” “Johannes die Doper,” het hulle dadelik geantwoord. “Of Elia. Ja, selfs een van die profete uit die ou dae wat weer lewendig geword het.” “En julle?” vra Jesus vir hulle. “Wie sê julle is Ek?” Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Een wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Messias.” “Julle mag dit vir niemand gaan vertel nie,” het Jesus gesê. “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd. “Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.” Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander. Jesus se klere het ook helderblink begin skitter. Twee mans het skielik aan Hom verskyn. Dit was Moses en Elia. Hulle was self met glans omring. Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag. Intussen was Petrus en die ander twee dissipels vas aan die slaap. Toe hulle wakker word, sien hulle dat Jesus omring is met ’n hemelse heerlikheid en ook hoe Moses en Elia met Hom praat. Terwyl die dissipels nog oorbluf na die toneel voor hulle staan en kyk, het Moses en Elia gereedgemaak om te vertrek. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis goed dat ons ook hier is. Nou kan ons gou drie tente maak, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Die arme Petrus het natuurlik nie ’n benul gehad wat hy sê nie. Petrus se woorde was skaars koud, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle almal. Die dissipels het baie bang geword toe hulle sien hoe die twee mans in die wolk instap. Skielik praat ’n stem uit die wolk. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het om my werk hier op die aarde te kom doen. Luister na Hom.” Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag. ’n Man daar in die skare het skielik hard uitgeroep: “Goeie Leermeester, ek smeek U, help my seun, asseblief. Hy is my enigste kind. En hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.” Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.” Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.” Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee. Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê. Tussen al die opgewondenheid deur het Jesus vir sy dissipels gesê: “Onthou baie goed wat vandag hier gebeur het, want dit gaan nie altyd so maklik wees nie. Binnekort gaan die mense My vang en My soos ’n misdadiger behandel.” Die dissipels het egter nie verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie. Hulle was ook te bang om te vra wat Hy bedoel. Maar dit was in elk geval nog nie die regte tyd vir hulle om te weet wat alles op Hom wag nie. Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur. “Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat sê Johannes, een van sy dissipels, vir Hom: “Here, party mense wat ons nie eens ken nie dryf deesdae al duiwels in u Naam uit. Ons het nou die dag op so iemand afgekom wat besig was om ’n duiwel in u Naam uit te dryf. Ons het hom dadelik verbied om dit te doen. Want hy is nie ’n volgeling van U nie.” “Moenie hom keer om dit te doen nie,” het Jesus dadelik geantwoord. “Want mense wat sulke dinge doen, is tog nie julle vyande nie. Hulle staan ten minste nie aan die duiwel se kant nie.” Jesus se taak om God se nuwe wêreld bekend te maak het nou stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Hy moes binnekort na sy hemelse woonplek toe terugkeer. Maar eers moes Hy na Jerusalem toe gaan. Jesus het toe ’n paar van sy volgelinge vooruitgestuur om te sorg dat Hy oral langs die pad ’n plek het om oor te bly. Jesus se volgelinge het in ’n dorp in die gebied van die Samaritane aangekom om vir Jesus kos en slaapplek te reël. Maar toe die inwoners hoor dat Hy op pad was Jerusalem toe, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Die Samaritane en die Israeliete het immers glad nie met mekaar oor die weg gekom nie. Toe Jesus in dié Samaritaanse dorp aankom, het sy volgelinge vir Hom kom sê dat Hy nie daar welkom was nie. Jakobus en Johannes was op die plek woedend. “Here, sê net die woord, dan vra ons vir God om vuur uit die hemel te stuur om al hierdie mense te verbrand.” [55-56] “Wat? Hoekom wil julle so iets verskrikliks doen?” het Jesus vir hulle gesê. “Kom ons gee liewer pad. In ’n ander dorp sal ons wel ’n plek kry.” *** Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.” Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.” Jesus draai toe na een van die ander mense wat ook saam met Hom gestap het en sê vir hom: “Volg My!” Die man antwoord vinnig: “Ek doen dit graag, maar ek moet net eers gou my pa gaan begrawe.” Maar Jesus was nie tevrede nie. “Los die dooies uit. Hulle het hulle kans gehad. Daar is in elk geval genoeg ander mense wat vinnig op pad is na die doderyk toe wat sal sorg dat jou pa begrawe word. Ek stuur jou nou na mense toe wat nog lewe. Gaan sê vir hulle God se nuwe wêreld is hier.” Iemand anders wat gehoor het wat Jesus alles sê, sê toe vir Hom: “Here, U hoef my nie te vra om U te volg nie. Ek bied sommer self aan om u volgeling te word. Ek wil net gou my familie gaan groet en hulle in kennis stel van my besluit.” Toe sê Jesus vir hom: “Daar’s nie nog tyd oor om jou familie te gaan groet nie. Los dit. Nou moet jy saam met My stap. As jy een van my volgelinge wil wees, moet jy al die ander dinge in jou lewe tweede stel, ook jou familie en vriende. Anders is daar nie vir jou plek in God se nuwe wêreld nie.” Kort daarna het die Here 72 van sy volgelinge aangewys om twee-twee voor Hom uit te gaan na al die plekke toe waar Hy sou aandoen op pad Jerusalem toe. Hy sê toe vir hulle: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes te gaan insamel. Vra die Here, aan wie hierdie oes behoort, om nog ekstra arbeiders te stuur. “Gaan nou na die plekke toe waarheen Ek nog op pad is. Maar wees gewaarsku: daar wag groot gevare op julle. Ek stuur julle soos ’n klompie skape deur ’n bos wat wemel van gevaarlike diere. “Julle moet só te werk gaan: Moenie ’n klomp geld saamvat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak nie. Moenie langs die pad met ander mense gesels nie. “As julle in ’n huis inkom, sê dan: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek. “Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’ “Wanneer die mense van ’n dorp julle die rug toekeer, gee dan dadelik daar pad. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê ook vir almal in die dorp dat hulle die kans van ’n leeftyd om deel van God se nuwe wêreld te word deur hulle vingers laat glip het. Hulle gaan nog baie spyt wees daaroor. Dit gaan vir hulle baie erger wees wanneer hulle eendag voor God moet gaan staan as wat dit sal wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat so berug was vir al hulle sondes.” Toe het Jesus ’n skerp uitspraak gemaak oor ’n paar van die dorpe in Galilea waar Hy gepreek het: “Gorasin en Betsaida, vir julle twee dorpe wag daar net probleme. Weet julle, as al daardie slegte mense van Tirus en Sidon die wonderwerke kon sien wat julle gesien het, was hulle almal binne sekondes op hulle knieë voor My. Met harte vol berou sou hulle dan vergifnis kom vra het. Maar toemaar, God se finale oordeel is op pad. En dan sal Tirus en Sidon lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref. “En julle spul daar in Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle ’n spesiale plek in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering. Julle plekke in die doderyk is al klaar bespreek. “Ek sê weer: as mense julle met oop arms ontvang en julle vriende wil wees, is hulle my vriende ook. Maar as hulle nie na julle luister nie en die rug vir julle draai, draai hulle ook die rug vir My. En as hulle My verwerp, doen hulle presies dieselfde met God, want Hy het My na julle toe gestuur.” Later het die 72 volgelinge van Jesus teruggekom van die plekke af waarheen Hy hulle gestuur het. Hulle was baie opgewonde. Hulle sê toe vir Jesus: “Weet U, Here, tot die duiwels luister na ons wanneer ons hulle in u Naam uit mense uitdryf.” “Maar natuurlik,” het Jesus geantwoord. “Ek is mos baie sterker as hulle. Ek het immers self gesien hoe die duiwel uit die hemel gegooi is. So vinnig soos ’n weerligstraal is hy daar uit God se terrein verwyder. “Maar Ek het nog goeie nuus vir julle: Ek gee aan julle mag oor die duiwel en oor sy handlangers se terrein waar daar baie dinge is wat julle skade kan aandoen. Julle het nou mag oor al sy bose magte. Sy slange en skerpioene sal julle geen skade aandoen nie. Omdat julle in My glo, is julle nou sterker as al my vyande. Maar wag, julle moenie feesvier omdat daardie bose magte voor julle die knie buig nie. Nee, vier liewer fees omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld is. Julle name is klaar op die lys van die gaste wat na sy hemelse feesmaal toe genooi is.” Toe het Jesus hardop begin bid. Omdat die Heilige Gees se krag in Hom was, was Hy so vol vreugde dat Hy dit eenvoudig met God moes deel: “My Vader, alles in die hemel en op die aarde behoort aan U. Ek wil vir U dankie sê dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. U het al u groot geheime verberg vir die groot en slim mense en dit aan die kleinste ou kindertjies kom bekendmaak. Dit was deel van u plan dat hulle in U moet glo. Ja, Vader, en nou gebeur dit ook. “Vader, U het al u groot krag tot my beskikking gestel. Alles en almal behoort nou aan My. Net U ken My regtig. U weet presies wie Ek is en wat Ek hier op die aarde kom doen het. Net so weet niemand anders wie U regtig is nie, behalwe Ek self. Ek ken U deur en deur. Ander mense kan net in U glo wanneer Ek vir hulle wys wie U regtig is. Dan eers gaan hulle oë oop.” Toe draai Jesus om na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Weet julle hoe bevoorreg julle is? Julle sien en hoor dinge wat g’n ander mens nog gesien of gehoor het nie. Weet julle hoeveel profete en konings van Israel het begeer om te sien wat julle nou sien? Vir hulle was dit egter nie beskore nie. Maar julle - julle sien nou die Seun van die lewende God met julle eie oë.” ’n Kenner van die wet van Moses wat na Jesus gesit en luister het, besluit toe om Hom ’n strikvraag te vra. Hy wou Jesus daar voor almal verneder. Hy staan toe op en vra ewe vroom: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se nuwe wêreld kan gaan bly?” “Ken jy dan nie die wet nie?” het Jesus vinnig teruggevra. “Sê My ’n bietjie, wat staan daar in die wet geskryf?” Die wetskenner antwoord toe: “Die wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” “Mooi so!” het Jesus gesê. “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, dan sal daar vir jou ’n plek wees in God se nuwe wêreld. So eenvoudig is dit!” Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?” Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê. “Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie. “Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap. “Toe kom daar ’n Samaritaan verby. En, soos jy weet, is die Samaritane en die Israeliete nie vriende nie. Maar hierdie Samaritaan het gaan stilstaan om te kyk wat die beseerde man makeer. Toe hy sien hoe die arme man lyk, het hy hom baie jammer gekry. Hy het dadelik die medisyne uitgehaal wat hy by hom in sy tas gehad het en die man se wonde skoongemaak. Hy het hom toe verbind en versigtig op sy donkie getel. Die Samaritaan is toe na die naaste herberg toe. Daar het hy die man in die bed gaan sit en hom versorg. “Die volgende oggend moes die Samaritaan verder reis. Hy sê toe vir die eienaar van die herberg: ‘Hier is geld om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap wanneer ek van my reis af terugkeer.’ “Sê My, wie van hierdie drie mans was ’n medemens vir daardie arme man wat onder die rowers deurgeloop het? Wat dink jy?” het Jesus toe vir die kenner van die wet gevra. Hy antwoord toe: “Ja, wel, seker daardie een wat goedgedoen het aan die man wat aangerand is.” “Mooi so! Gaan doen jy nou presies dieselfde as hy. Word ’n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het, maak nie saak wie of wat hulle is nie,” het Jesus geantwoord. Daarna het Jesus verder gereis Jerusalem toe. Langs die pad het Hy in ’n dorp oorgebly by ’n vrou met die naam Maria. Sy het ook ’n suster gehad; haar naam was Marta. Toe Jesus daar in hulle huis kom, het Hy oudergewoonte met sy volgelinge oor God se nuwe wêreld gepraat. Maria, wat haar suster gehelp het om die kos reg te kry, het dit agtergekom. Sy het toe tussen hulle gaan sit. Marta het intussen agtergekom dat Maria nie meer in die kombuis help nie. Toe sy haar suster daar by Jesus sien sit, was sy op die plek kwaad. Sy het na Jesus toe gestap en vir Hom gesê: “Here, hoe kan U so iets toelaat? Pla dit U nie dat my suster my alleen laat kos maak en die gaste bedien nie?” Maar die Here het Marta geantwoord: “My liewe Marta, jy hardloop aanmekaar rond. Jy bekommer jou of alles gereed is. Laat staan dit! Dis mos nie waaroor die lewe gaan nie. Daar is net een ding wat regtig saak maak: om God te ken. Maria weet dit. Daarom het sy die regte keuse gemaak. Niemand sal dit ooit van haar kan wegvat nie.” Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.” Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’ Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’? “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet? As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.” Daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van die duiwel was. Hy kon nie ’n enkele woord praat nie. Maar Jesus het die duiwel gou uitgedryf. Toe kon hy weer praat. Dit het die omstanders diep geraak. Party was egter nie beïndruk nie. “Nee wat, moenie julle so maklik laat kul nie. Hierdie man is goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste na hom.” ’n Groep ander mense sê toe vir Jesus: “Doen gou vir ons ’n teken. Ons wil heeltemal seker maak dat jy aan God se kant staan soos jy sê.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Daarom sê Hy toe vir hulle: “Wanneer ’n klomp soldate gedurig onder mekaar aan die baklei is, sal hulle mos nooit ’n oorlog teen ’n ander leër wen nie. Net so sal ’n gesin waarin almal van vroeg tot laat aan die stry is, ook nooit gelukkig bly nie. Die een of ander tyd sal hulle uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan hy eindig? Kort voor lank stort sy hele koninkryk in duie. Dit is presies wat sal gebeur as Ek en die duiwel sulke groot vriende is soos julle spul dink. “Maar wag, party van julle dryf ook mos demone uit. As julle nou sê Ek doen dit omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wat dan van julle? Wie se vriende is julle dan? Toe, laat julle mense self vir julle die antwoord gee! As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg. “Weet julle, wanneer ’n onrein gees uit ’n mens se lewe padgee, gaan soek hy vir hom ’n ander blyplek. As hy na ’n lang soektog nie ’n rusplek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan gou kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dan dolleeg, mooi skoon en reg. Dan gaan haal hy sommer nog sewe ander bose geeste wat blyplek soek. En hulle is nog slegter as hy. Die hele spul van hulle gaan trek dan saam daar in. Sowaar, vir so iemand sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die keuse gehad het.” Toe Jesus dit sê, roep ’n vrou uit die skare skielik opgewonde uit: “O, watter aangrypende dinge sê U nie! Hoe wonderlik moet dit nie wees om ’n kind soos U te hê nie. U ma is die gelukkigste vrou op aarde. Om te dink sy het iemand soos U in die wêreld gebring en U grootgemaak.” “Ja, dis seker waar,” antwoord Jesus toe. “Maar daar is mense wat selfs nog gelukkiger as my ma is. Dit is hulle wat God se Woord hoor en dit doen.” ’n Groot skare mense het om Jesus begin saamdrom. Maar Hy was nie baie tevrede daarmee nie. Hy sê toe vir hulle: “Julle loop om die verkeerde redes agter My aan. Julle steur julle lankal nie meer aan God nie. Nou kom soek julle by My allerhande tekens sodat julle weer so ’n klein rukkie op God se pad kan kom stap. Julle wil hê Ek moet julle met ’n paar wonderwerke vermaak. Ek weier om dit te doen. Maar Ek sal wel een teken vir julle gee: gaan kyk na die profeet Jona. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met hom gebeur het toe hy drie dae in die maag van die vis was. “Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag. “Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie? “Die mense van Nineve sal op die finale oordeelsdag as regters oor hierdie sondige geslag oordeel. Want hulle het hulle bekeer toe Jona met hulle gaan praat het. Dit is baie meer as wat van julle spul gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie!” “’n Mens sit nie in die aand ’n lig in jou huis aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lig op so ’n plek in die huis dat dit vir almal kan lig gee. Dan sien hulle mos wat om hulle aangaan. Julle moet ook so maak. Wees ’n lig vir ander wat nog in die donker leef. “Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel om reg te kyk nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. Maar aan die ander kant: as jou hele lewe vol lig is, is al die donker uit jou lewe verdryf. Dan loop jy nie meer in die een sonde na die ander vas nie. Nee, dan weerkaats al jou woorde en dade God se helder lig.” Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het een van die Fariseërs vir Hom gesê: “Kom eet by my.” Jesus het saam met hom na sy huis toe gegaan. Daar aangekom, het Jesus dadelik aan tafel gaan sit sonder om sy hande te was. Die Fariseër was verstom hieroor. Jesus sê toe vir hom: “Ja, julle spul Fariseërs laat My dink aan mense wat net die buitekant van ’n beker en ’n skottel skoonmaak, maar die binnekant so vuil los. Julle is so verskriklik skoon en netjies op die oog af, maar binne-in julle wemel dit van die kwaad en van slegte dinge. Julle dwase! Weet julle nie dat God ons nie net met ’n buitekant gemaak het nie, maar ook met ’n binnekant? Hoekom gee julle nie ook julle binnekant vir Hom nie? Dan is julle regtig silwerskoon, binne en buite! “Ek waarsku julle spul Fariseërs: swaar tye wag op julle wanneer julle die dag voor God moet gaan staan. Julle werk die tiendes wat julle aan God gee tot op die laaste sent korrek uit. Maar wanneer dié dinge gedoen moet word wat regtig vir Hom saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om te sorg dat reg en geregtigheid geskied en om met julle hele lewe te wys dat julle God liefhet. Ek sê nie die ander dinge wat julle doen, is verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook daardie dinge doen wat regtig vir God saak maak nie. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. In die godsdienstige byeenkomste hoef ’n mens nie eens na julle te soek nie. Julle sit mos daar op die belangrikste plekke waar niemand julle kan miskyk nie. En dis tog te lekker vir julle om in die winkels of op straat so eerbiedig deur almal gegroet te word. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. Julle laat My dink aan ’n klompie weggesteekte grafte waarop almal trap sonder dat hulle dit besef. Julle is eintlik morsdood - julle steek dit net baie goed weg.” Een van die kenners van die wet wat saam met Jesus aan tafel was, het Hom skielik onderbreek: “Kyk, jy mag miskien ’n soort leermeester wees, maar nou raak jy beledigend. Jy is nou ook besig om my en my kollegas wat wetskenners is hier voor almal aan te vat.” Jesus sê toe vir hom: “Daar wag ook groot probleme op julle spul kenners van die Bybel. Ek sal vir julle sê hoekom. Julle skryf dik boeke vol moeilike godsdienstige reëls en stop dit dan in mense se hande en sê: ‘Gaan doen dit tot op die letter van die wet.’ Maar julle kan self nie eens alles doen wat op bladsy een van julle eie boeke geskryf staan nie. “Ja, swaar tye wag vorentoe op julle, want julle rig groot grafstene op vir al God se boodskappers van weleer. En tog is julle die nageslag van die einste mense wat hulle vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie, nè? Julle is elkeen maar net soos julle pa’s en oupas. Hulle het God se boodskappers een vir een doodgemaak, en nou bou julle grafte vir hulle almal. “God het al lankal gewaarsku dat so iets sou gebeur. Hy het gesê dat Hy sy boodskappers en sy apostels na julle toe sou stuur, maar dat hulle doodgemaak en vervolg sou word. Daarom sal elke druppel bloed van elke boodskapper van die Here van julle spul geëis word. Ja, Ek bedoel dit! Daar reg van die begin af, van Abel af tot by Sagaria wat by God se huis dood is, sal elke profeet se bloed van julle geëis word. “Swaar tye wag vorentoe op julle spul kenners van die wet. Want julle het die sleutel van die deur wat na God se wêreld toe lei, weggegooi. Julle weet nie meer hoe om daar uit te kom nie. En dan staan julle boonop nog in die pad van ander wat probeer om by God uit te kom.” Hierdie woorde van Jesus was die laaste strooi. Al die godsdienstige leiers het tegelyk begin praat en skree. Hulle was woedend oor wat Hy gesê het. Die Fariseërs en die wetskenners het hulle bes probeer om Jesus in ’n hoek te dryf. Hulle wou hê dat Hy iets moes sê wat hulle teen Hom kon gebruik. Intussen het duisende mense na Jesus toe gestroom. Tussen die gedrang deur sê Hy vir sy dissipels: “Julle moet lig loop vir die Fariseërs. Met hulle skewe leerstellings maak hulle almal heeltemal deurmekaar. Hulle is ’n klomp skynheiliges. “Gelukkig kan mense se leuens nooit die waarheid in ’n bottel toeskroef nie. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.” “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is. Maar aan die ander kant, as julle tussen ander mense maak of julle My nie ken nie, sal Ek presies dieselfde met julle doen. Dan sal Ek ook daar voor die engele maak of Ek julle nie ken nie. “Weet julle, daar is niks wat mense aan My kan doen of oor My kan sê wat so sleg is dat God hulle dit nie kan vergewe nie. Maar daar is wel een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense die rug draai vir die Heilige Gees se werk. Wanneer die Gees aan die werk is en mense sê dis die duiwel wat aan die werk is, is hulle in baie groot moeilikheid by God. Hy sal hulle dit nooit vergewe nie. “Wanneer die mense julle baie sleg behandel omdat julle my volgelinge is, moet julle nie moed opgee nie. As hulle julle voor die hof sleep of voor allerhande hooggeplaastes, hoef julle julle nie te bekommer hoe julle julle gaan verdedig nie. Los maar die advokate en die prokureurs uit. Die Heilige Gees sal persoonlik daar by julle wees om julle te verdedig. Wanneer julle beurt kom om iets te sê, sal die Gees vir julle al die regte woorde gee wat julle moet sê.” Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.” “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’ “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet. Ek kan myself op die skouer klop en sê: Mooi so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie. Gaan geniet nou jou lewe. Hou partytjie. Gee jou oor aan drank en plesier. Doen net wat jy wil. Jy verdien dit mos.’ “Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’ “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewens eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie? Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee! “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges? “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.” “Julle moet reg leef. Laat julle lig helder in hierdie donker wêreld skyn, want die Here kan enige oomblik terugkom. Julle moet soos werkers in ’n belangrike man se huis wees wat die hele tyd wag dat hy van ’n bruilof af moet terugkeer. As hy laat in die aand aan die voordeur klop, maak hulle dadelik vir hom oop. Daardie werkers is gelukkig dat hulle nie aan die slaap geraak het nie, want die werkgewer sal daar en dan vir hulle iets te ete gee. Hy sal selfs dat hulle in sy eetkamer gaan sit terwyl hy hulle bedien. “Daardie werkgewer sal selfs nog blyer wees as hy eers in die middel van die nag by sy huis aankom en sy werkers staan steeds getrou daar by die voordeur vir hom en wag. Dan wag daar sommer ’n groot present op hulle. “Nog ’n voorbeeld: As iemand hoor dat ’n dief beplan om drie-uur in die nag by hom te kom inbreek, sal hy mos gereed wees, nie waar nie? Hy sal die dief met niks laat wegkom nie. Net so moet julle ook sorg dat julle reg is, want julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie. Al wat Ek vir julle kan sê, is dat dit op ’n tydstip sal wees dat julle dit die minste verwag.” Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?” Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.” “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie! Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie. “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei. Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees. ’n Ma en haar seun sal byvoorbeeld in My glo, terwyl die pa en sy dogters weier om My te dien. Pa’s en seuns sal van nou af mekaar haat oor My. Ma’s en hulle dogters sal haaks wees om dieselfde rede; so ook ganse families. Ek gaan nog maak dat baie mense niks met mekaar te doen wil hê nie.” Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook. En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook. “Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie. Besef julle nie hoe laat dit al op God se groot horlosie is nie? “Julle weet ook nie hoe om reg teenoor ander mense op te tree nie. Kyk net hoe dikwels beland julle in die hof. Dit is omdat julle nie bereid is om die saak voor die tyd te gaan uitpraat met mense wat julle hof toe wil vat nie. Moenie so hardkoppig wees nie. Gaan maak dinge tussen julle en ander mense reg voordat julle in die hof beland. Wie weet, later word julle skuldig bevind en dan moet julle ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” Die mense het vir Jesus kom vertel van ’n verskriklike ding wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, aangevang het. Hy het ’n klomp mense uit Galilea doodgemaak terwyl hulle in Jerusalem ’n offer aan die Here wou bring. “Dié mense moes seker groot sondaars gewees het. Dis hoekom God dit met hulle laat gebeur het,” het hulle tussendeur bygevoeg. “Dink julle regtig daardie mense was groter sondaars as al die ander mense wat in Galilea bly?” het Jesus dadelik gevra. “Wel, as julle so dink, is julle verkeerd. Maar wag, julle spekuleer so lekker oor ander mense se sondes. Kyk eerder ’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Anders is julle binnekort dood, net soos daardie Galileërs, en dan is dit vir altyd te laat. “Julle het dalk ook die nuus gehoor van die Siloamtoring wat in Jerusalem omgeval het. Agtien mense is in daardie ramp dood. Nou sal julle seker ook sê dat hulle groter sondaars was as al die ander inwoners van Jerusalem. Daarom het God hulle nou teruggekry. Ek sê weer ’n keer: God werk nie so nie. Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat om julle saak met God reg te maak.” Daarna het Jesus vir die mense ’n verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat baie vyebome gehad het. Soos gewoonlik het hy elke jaar kom kyk hoe sy bome dra. Maar daar was een boom wat jaar na jaar nie ’n enkele vy aan gehad het nie. Hy sê toe vir sy tuinier wat die bome moes versorg: ‘Kyk, dis nou al drie jaar dat hierdie boom nie vye dra nie. Kap hom uit! Dit put net die grond uit. Kom ons plant liewer ’n ander boom in sy plek.’ “Toe sê die tuinier: ‘Ag, Meneer, kan ons nie maar nog ’n keer probeer nie? Kom ons gee die boom nog ’n jaar kans. Ek sal sorg dat hy hierdie jaar die beste bemesting en genoeg water kry. Dan behoort hy volgende jaar vrugte te dra. So nie, as al my harde werk nie help nie, kan u die boom maar uitkap.’” Kort daarna het Jesus een sabbatdag na ’n Joodse sinagoge toe gegaan om die mense daar te leer wat God van hulle vra. Daar was ook ’n vrou in die skare wat al agtien jaar lank baie siek was. Haar hele liggaam was inmekaargetrek. Sy kon nie normaal loop nie. Toe Jesus haar raaksien, het Hy haar jammer gekry en dadelik vir haar gesê: “Ek het baie goeie nuus vir jou: van hierdie oomblik af is jy heeltemal gesond.” Toe Jesus sy hand op haar sit, het sy dadelik regop gestaan. Sy was so bly dat sy God se Naam grootgemaak het. Maar die hoof van die sinagoge was baie kwaad omdat Jesus iemand op die sabbatdag gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense wat hierdie wonderwerk aanskou het: “Kyk, daar is ses dae waarop ’n mens kan werk. Op daardie dae kan siekes gesond gemaak word. Maar definitief nie op die sabbat nie. Dié man het hier voor ons oë die sabbat oortree.” “Julle skynheiliges!” het Jesus dadelik teruggekap. “Gee julle nie op die sabbat vir julle diere kos en water nie? Tel dit nie as werk nie? Ek het vandag ’n Israelitiese vrou verlos wat agtien jaar lank deur die duiwel gekasty is. Na al die jare van swaarkry is sy uiteindelik vry. Is dit nie gepas dat sy juis op God se rusdag self ware rus moes vind nie?” Die ander godsdienstige leiers wat ook vir Jesus kwaad was, het skaam gekry toe hulle hoor wat Hy sê. Maar die res van die mense was oorstelp van vreugde oor alles wat Jesus gedoen het. Toe sê Jesus vir hulle: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe God se nuwe wêreld daar uitsien? Ja, kom Ek gebruik die volgende voorbeeld: God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n baie klein saadjie soos ’n mosterdsaadjie. Iemand vat dit en gaan plant dit in sy tuin. Uit hierdie piepklein saadjie groei later so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dis so groot dat al die voëls daarin nes kan maak. “Hier is nog ’n voorbeeld hoe God se nuwe wêreld werk: ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit dan baie goed in ’n skottel deeg in. Na ’n rukkie deurtrek die suurdeeg al die deeg in daardie skottel en laat dit rys.” Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe het Hy langs die pad by die dorpe en die klein plekkies aangegaan en die mense daar gaan leer. By een van hierdie plekke het iemand Hom gevra: “Here, hoeveel mense gaan ’n plek kry in God se nuwe wêreld? Seker maar min?” “Ja, jy is reg. Baie mense sal probeer om daar in te kom, maar hulle gaan dit nie maak nie. Dit is nie maklik om daar in te kom nie. Daarom moet jy jou inspan as jy daar wil inkom. Doen jou uiterste bes. Want baie gaan probeer om daar in te kom, maar min mense gaan dit maak. “Kom Ek gebruik ’n beeld om vir julle te verduidelik wie almal in my nuwe wêreld plek gaan kry. Weet julle, Ek is soos Iemand met ’n groot huis. Daar is natuurlik oorgenoeg plek in my huis vir almal wat doen wat Ek sê. Maar op ’n dag gaan Ek my huis se deur sluit. Dan sal baie mense wat nog buite staan, probeer inkom. Hulle sal aan die deur klop en uitroep: ‘Here, Here, U het van ons vergeet. Ons staan nog buite. Maak asseblief vir ons oop!’ “Maar Ek sal van binne af antwoord: ‘Gaan weg! Ek weet nie wie julle is nie. Hier’s nie plek vir julle nie.’ “Dan sal hulle antwoord: ‘Maar onthou U ons dan nie meer nie? Ons het saam met U geëet en feesgevier. Toe U hier by ons op die aarde was, het ons oral agter U aangeloop.’ “Dan sal Ek antwoord: ‘Ek het nie die vaagste idee wie julle is of waarvandaan julle kom nie. Gee dadelik pad, julle goddelose spul! Hier in my huis is daar nie plek vir julle nie.’ “Waarheen dink julle moet daardie mense dan gaan? Na die doderyk toe, natuurlik. En daar is dit een groot hartseerspul. Veral vir dié van julle wat onder die misverstand verkeer dat julle ’n plek gaan kry in God se nuwe wêreld. Weet julle hoe verskriklik dit gaan wees as julle al die groot name uit julle geskiedenis, vir Abraham en Isak en Jakob en die profete, daar in God se wêreld sien, maar julle self moet buite staan? Julle sal huil en skreeu van die pyn. Maar dan is dit natuurlik te laat. Van oor die hele wêreld sal mense na God se nuwe wêreld toe stroom terwyl julle spul wat gedink het dat net julle daar gaan plek kry, dit nie sal maak nie. “Uiteindelik sal al die rolle omkeer: mense wat nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar baie belangrik wees. Maar diegene wat nou belangrik is, sal geen plek in God se nuwe wêreld hê nie.” Later daardie dag het ’n paar Fariseërs wat simpatiek teenoor Jesus gestaan het vir Hom kom sê: “U moet dadelik padgee. Ons het gehoor dat Herodes, die heerser oor Galilea, op u spoor is. Hy wil U doodmaak.” Jesus sê toe: “Gaan sê julle vir daardie skelm dat Ek sal aanhou om siek mense gesond te maak en om duiwels uit te dryf. Ek sal dit vandag doen, en môre, en tot op die derde dag. Maar intussen moet Ek voortgaan met my reis na Jerusalem. Die volgende drie dae moet Ek gebruik om daar uit te kom. Want sê nou Herodes doen wat hy sê, dan gaan Ek nog buitekant Jerusalem dood. En dit mag nie! God se plan is dat Ek daar in die stad moet doodgaan. Dit is nie reg dat sy boodskapper buite die stad sterf nie. “Maar terwyl Ek oor Jerusalem praat. Vir julle almal wat daar bly, wag daar bitter swaar tye. Kyk net wat vang julle aan: julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood! Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek voel oor julle soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het klaar die rug vir My gedraai. Daarom sal daar van julle niks oorbly nie. Jerusalem gaan ’n spookdorp word. “Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Maar weet julle, daar kom ’n dag dat julle gedwing sal word om uit te roep: ‘Hy is toe al die tyd die Een wat van die Here af kom. Loof sy Naam!’” Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus by een van die leiers van die Fariseërs gaan eet. Oudergewoonte het hulle Hom fyn dopgehou, want teen daardie tyd het hulle baie goed geweet dat Jesus Hom nie veel aan hulle reëls en wette steur nie. Intussen het Jesus gesien dat daar ’n man onder hulle was met ’n liggaamlike afskeiding wat hom onrein maak. Toe draai Hy na die ander godsdienstige leiers toe wat ook daar was vir die ete en vra hulle: “Sê My, mag ’n mens iemand wat siek is op die sabbat gesond maak, of nie? Wat sê julle?” Maar niemand het ’n woord gesê nie. Hulle het net doodstil bly sit. Toe stap Jesus na die siek man toe, maak hom gesond en stuur hom terug na sy huis toe. Jesus vra toe vir die godsdienstige leiers: “Wat sal julle doen as een van julle kinders of een van julle diere op die sabbatdag in ’n diep sloot vol water val? Sal julle hulle nie dadelik uithaal nie?” Die godsdienstige leiers was nou in ’n hoek. Hulle het geweet as hulle ja sê, sou Jesus vir hulle sê dat dit presies was wat Hy nou vir die siek man gedoen het. Daarom het hulle stilgebly. ’n Rukkie later, toe die gasheer vir die gaste sê om te kom aansit vir ete, merk Jesus op hoe almal skarrel om die beste plekke aan tafel te kry. Toe sê Hy vir hulle: “Moenie altyd hardloop vir die beste plek as jy na ’n belangrike geleentheid toe uitgenooi word nie. Netnou gaan sit jy dalk op ’n plek wat vir ’n eregas bespreek is. Dink net hoe skaam jy dan sal kry as die gasheer daar voor almal vir jou kom sê: ‘Verskoon tog, maar hierdie plekke is eintlik vir die eregaste bedoel. Soek vir jou ’n ander plek.’ Dan moet jy met ’n rooi gesig opstaan en op die slegste plek gaan sit. “Gaan sit liewer daar agter tussen die ander mense as jy na ’n belangrike funksie toe genooi word. Kies doelbewus die swakste plek uit. Wie weet, dalk kom die gasheer na jou toe en sê: ‘Ag nee, vir wat sit jy hier agter? Daar voor is ’n baie beter plek. Kom sit daar by my.’ Dan sal almal wat saam met jou aan tafel sit, sê: ‘Sjoe, dat so ’n belangrike persoon so nederig is om hier tussen ons te sit!’ Onthou: nederige mense word op die ou end met eer bekroon en belangrike mense word verneder.” Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug uit te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is. “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.” Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!” Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’ “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’ “’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n klompie osse gekoop en moet gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’ “Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het pas getrou. Daarom kan ek nie vandag by u ete wees nie.’ “Die helper het toe teruggekom en vir sy werkgewer vertel dat niemand meer kon kom nie. Die man was woedend daaroor. Nadat hy so ’n rukkie gestaan en dink het, sê hy toe vir sy helper: ‘Kom ons maak ’n ander plan. Alles staan mos gereed. So, waarom sal ons dan nie feesvier nie? Gaan nooi gou almal wat jy in die hande kan kry. Maak nie saak wie hulle is of waar hulle bly nie, gaan nooi hulle uit. Gaan haal die armes en al die siekes wat daar in die agterstrate tussen die asblikke slaap. Sê vir hulle hulle moet dadelik na my feesmaal toe kom.’ “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’ [23-24] “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’” *** Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het. Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg! “Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg. “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie? Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou. Hulle sal sê: ‘Daar’s nou vir jou ’n deurmekaar ou wat ’n huis halfpad bou en dit dan net so laat staan!’ “Nog ’n voorbeeld: As ’n koning met ’n leër van 10 000 soldate besluit om te gaan oorlog maak teen ’n ander koning met ’n leër van 20 000 soldate, moet hy voor die tyd baie mooi dink of hy dit kan regkry. So nie, moet hy liewer ’n afvaardiging na die ander koning toe stuur en met hom probeer onderhandel om ’n vreedsame oplossing te kry. “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie. “Julle wat sê dat julle my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld. Maar wat help dit as julle self smaakloos is? Dan beteken julle niks meer vir My nie. Dan moet julle weggegooi word, presies net soos ’n mens maak met sout wat sy smaak verloor het. Julle moet mooi luister na wat Ek vir julle sê, en dit ook gaan doen.” Teen daardie tyd was dit mode vir die godsdienstige leiers van die Jode om na Jesus te kom luister en Hom dan te kritiseer oor alles wat Hy sê en doen. Op ’n dag was hulle juis weer vies vir Hom omdat Hy saam met ’n klomp mense geëet het wat in hulle oë onrein was omdat hulle nie al die Joodse godsdienstige reëls en wette nagekom het nie. Jesus sê toe vir hulle: “Sê My, wat sal julle maak as julle 100 skape het en een raak weg? Sal julle nie die ander 99 net daar in die veld laat staan en daardie een gaan soek wat weg is nie? Wanneer julle daardie skaap uiteindelik kry, sal julle so bly wees dat julle hom net daar op julle skouers sal tel en terugdra na die ander toe. Later sal julle dan julle vriende en familie oornooi om saam met julle te kom feesvier oor die skaap wat teruggevind is. Julle sal vir hulle sê: ‘Wees bly saam met my, want ek het my skaap wat weg was weer gekry. Hy is nou veilig terug tussen al die ander skape.’ “Weet julle, in God se wêreld gaan dit net so. Daar is groot vreugde in die hemel as een sondaar na God toe terugkom. Ja, daar is groter blydskap oor een mens wat van die verkeerde pad af terugkom as oor al God se kinders wat elke dag doen wat Hy van hulle vra.” “Nog ’n voorbeeld: ’n vrou wat net ’n klein bietjie geld op haar naam het en dit dan iewers in haar huis laat lê, sal dadelik daarna begin soek. Sy sal die huis van hoek tot kant fynkam. As sy die geld uiteindelik kry, is sy verskriklik bly. Dan nooi sy al haar vriendinne oor om saam met haar fees te vier: ‘Kom wees saam met my bly, want ek het my geld gekry wat weggeraak het.’ “Net so is daar groot vreugde in die hemel wanneer een sondaar terugkom op die regte pad. Dan vier al die engele voor God se troon fees.” Toe vertel Jesus nog ’n verhaal: “Eendag was daar ’n man met twee seuns. Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’ “Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee. ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer. Kort voor lank was al sy geld op. Toe breek daar ’n groot hongersnood in die land uit sodat die jongman niks gehad het om te eet nie. Hy het later gaan werk vir iemand wat in daardie land bly. Al werk wat hy vir die jongman gehad het, was om varke op te pas. Later was die arme man so honger dat hy selfs bereid was om die varke se kos te eet. Maar die eienaar het geweier. “Op ’n dag sit die jongman toe by homself en dink: ‘Wat vang ek aan met my lewe? Selfs my pa se slawe daar op sy plaas het ’n beter lewe as ek. Hulle het almal oorgenoeg kos om te eet, maar ek het nie eens ’n stukkie droë brood om my honger te stil nie. Hier sit ek en sterf van ellende! Vandag nog gaan ek terug na my pa se huis toe. Ek sal vir hom sê: Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun te wees nie. Vat my asseblief terug as ’n doodgewone werker hier op Pa se plaas.’ “Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap. “Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar die pa het gou vir sy werkers gesê: ‘Gaan haal die beste stel klere in my kas en bring dit vir my seun. Vat ook ’n ring en ’n paar goeie skoene en gee dit vir hom. Ja, en gaan slag gou-gou daardie kalf wat ons lankal vetmaak vir ’n spesiale geleentheid. Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees, want my seun is terug! Ek het gedink hy’s al dood, maar kyk, hy leef! Hy was weg, maar nou’s hy terug waar hy hoort: in sy pa se huis.’ “Die ouer broer het nie geweet sy broer is terug nie, want hy was buite in die veld. Toe hy naby die huis kom, sien hy dat daar ’n groot partytjie op die plaas aan die gang is. Van ver af kon hy die musiek hoor en al die mense wat feesvier en dans. Hy roep toe een van die werkers en vra: ‘Wat is aan die gang?’ “‘Jou broer is terug!’ antwoord hy. ‘Jou pa is so bly dat hy daardie vetgemaakte kalf geslag het om dit te vier dat jou broer lewend terug is.’ “Maar die oudste broer was so kwaad hieroor dat hy nie eens sy broer wou gaan groet nie. Toe sy pa daarvan hoor, was hy hartseer. Hy het na sy oudste seun toe gestap en vir hom gaan vra om saam met hulle te kom feesvier. “‘Vir wat?’ vra hy. ‘My lewe lank doen ek alles wat Pa wil hê. Nog nie een dag het ek geweier om te doen wat Pa sê nie. Tog het Pa nog nooit vir my ’n partytjie gehou nie. Pa het nog nie eens vir my gesê om ’n paar van my vriende oor te nooi om by my te kom kuier nie. Maar toe daardie ander seun van Pa uit die bloute hier opdaag na hy al Pa se besittings uitgemors het op ’n spul straatvroue en op dronkpartytjies, word die heel beste kalf op die plaas vir hom geslag. Ek kan dit nie glo nie!’ “Toe antwoord die pa: ‘My kind, wat praat jy alles? Jy is dan my eie vlees en bloed. Alles wat ek het, is joune. Maar vandag vier ons fees oor jou broer, want hy was dood en nou lewe hy weer. Jou broer was weg, maar nou is hy terug in ons huis waar hy hoort.’” Daarna het Jesus ook vir sy dissipels die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n ryk man wat ’n bestuurder aangestel het om sy besigheid te behartig. Na ’n ruk het die man agtergekom dat die bestuurder al sy geld uitmors. Hy stuur toe ’n boodskap aan sy bestuurder: ‘Ek is glad nie tevrede met die manier waarop jy my sake bestuur nie. Kom sien my dadelik. Begin ook maar solank uitkyk vir ’n ander werk.’ “Die bestuurder het besef hy is in die moeilikheid. Hy dink toe by homself: ‘Wat doen ek nou? Ek gaan definitief in die pad gesteek word. En werk is deesdae maar skaars. Ek sien regtig nie kans om in iemand se tuin te gaan werk of om met ’n bordjie om my nek in die straat te staan en geld bedel nie.’ “Die man kry toe ’n plan: ‘Ja, nou weet ek! Ek gaan ten minste sorg dat ek op goeie voet bly met al die sakemanne wat nog aan my baas geld skuld. Dalk het een van hulle vir my ’n werk.’ “Daar en dan het die bestuurder toe almal wat aan sy baas geld skuld, laat roep. Toe die eerste een daar opdaag, sê hy vir hom: ‘Ek sien jy betaal nie jou skuld nie. Sê my, hoeveel skuld jy aan my baas?’ “‘Ek het 100 vate olie by hom op skuld geneem,’ antwoord die man. “Toe sê die bestuurder: ‘Wel, ek verminder jou skuld nou dadelik met die helfte na net 50 vate olie.’ “Die bestuurder roep toe die volgende persoon in en vra vir hom: ‘Hoeveel skuld jy aan my baas?’ “‘Ek het ’n groot klomp koring by hom op skuld gekoop. Ek skuld hom 100 bale koring.’ “‘Jy is baie gelukkig,’ sê die bestuurder toe. ‘Want ek verminder jou skuld van vandag na 80 bale koring. Dis al wat jy nou moet terugbetaal.’ “Die ryk man het intussen gehoor wat sy skelm bestuurder doen. Toe hulle twee later die dag ontmoet, het hy hom egter nie afgedank nie, maar sommer daar op die plek gelukgewens met sy goeie plan. Almal in die dorp het immers nou gepraat oor hoe barmhartig die ryk man is.” Toe sê Jesus: “Weet julle, so gaan dit dikwels in die sakewêreld. Baie sakemense wat hulle nie aan die Here steur nie, is partymaal besig met skelmstreke. Hulle help mekaar om ander mense te verkul sodat hulle gou ryk kan word. Natuurlik kan julle by sakemense leer hoe om op te tree. Maar moet egter nie saam met skelms agter geld aanhardloop nie. “Julle moet eerlik wees, selfs ook in die heel kleinste dingetjies wat julle doen. As julle vertrou kan word met kleingeld, sal julle ook vertrou kan word met ’n hele sak vol geld. Aan die ander kant, as julle nie eens vertrou kan word met ’n paar sent nie, hoe sal julle dan eerlik wees wanneer julle besigheid doen? Moenie toelaat dat die geldgod julle in sy kloue beetkry nie. Dan gaan julle ander mense probeer uitbuit. As julle nie eerlik kan wees met geld in hierdie oneerlike wêreld waarin julle leef nie, hoe sal Ek dan ooit my nuwe wêreld aan julle sorg kan toevertrou? “Maak ’n keuse vir wie julle wil werk: óf vir God, óf vir die geldgod. Julle kan nie vir albei tegelyk werk nie. Net soos dit onmoontlik is om twee voltydse werke te hê, is dit onmoontlik om voor twee here te buig. So, kies!” ’n Klompie Fariseërs, wat baie lief vir geld was, het gehoor wat Jesus sê en begin toe met Hom spot. “Ja, spot maar!” het Jesus geantwoord. “Julle maak asof julle nooit ’n voet verkeerd sit nie. Julle beïndruk almal met julle vroomheid, maar God kyk dwarsdeur julle. Hy weet baie goed wat binne-in julle aangaan. En weet julle wat? Hy hou niks van julle nie. Julle walg Hom! “Maar Ek het nog ander slegte nuus vir julle: julle godsdiens is uit die mode. Ja, julle het reg gehoor: dis uitgedien! Al julle wette en reëls behoort tot die verlede. Tot onlangs toe het God nog die wet en profete gebruik om sy wil bekend te maak. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Johannes die Doper was die laaste een van die profete. Van nou af gaan dit net oor God se splinternuwe wêreld. Ek maak dit bekend. En mense val nou omtrent oor hulle voete om daar in te kom. Hulle storm oral in die koninkryk in. “Maar verstaan My goed: Ek kom skaf nie die wet af nie. Dit sal bly bestaan. Solank die son nog skyn en daar sterre in die hemel is, sal elke letter van die wet van krag bly. “Kom Ek verduidelik vir julle hoe julle nou die wet moet hou wanneer dit by iets soos egskeiding kom. Wel, Ek sê nou vir julle: julle mag glad nie skei nie. Wanneer julle skei en met iemand anders trou, oortree julle die wet. En elkeen wat met iemand trou wat reeds geskei het, pleeg ook egbreuk.” “Kom Ek vertel julle nog ’n storie. Eendag was daar ’n ryk man. Hy het baie duur klere gedra en elke dag soos ’n koning geleef. Dan was daar ook ’n baie arm man. Sy naam was Lasarus. Hy het nie ’n sent op sy naam gehad nie. Later was hy so swak en uitgehonger dat hy heeltyd daar voor die ryk man se huis gelê het. Arme Lasarus; hy het dikwels gedroom hoe hierdie ryk man vir hom die oorskietkos uit sy huis bring om te eet. Maar selfs dit was hom nie beskore nie. Sy enigste vriende was die rondloperhonde wat nou en dan die swere aan sy lyf kom lek het. Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het ’n koninklike ontvangs in die hemel hom te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra. “’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die doderyk oopgemaak. Dit was verskriklik. Pyn en lyding was sy voorland. So in sy lyding sien hy eendag vir Abraham daar ver aan die ander kant raak. En ook vir Lasarus wat by Abraham sit. Hy roep toe hard uit: ‘Vader Abraham, kry my tog jammer. Stuur asseblief vir Lasarus met ’n slukkie water vir my. Selfs net ’n druppeltjie water op my tong sal genoeg wees. Hierdie vuur is verskriklik. Ek kan die pyn nie langer uithou nie!’ “Maar Abraham sê vir hom: ‘Dink so ’n bietjie terug. Daar op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry. Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie. Weet jy, dis nou te laat om iets daaraan te doen. In elk geval: tussen ons en julle is ’n yslike kloof wat niemand kan oorsteek nie. So, ons kan nie vir jou water bring nie. Jy kan ook nie hiernatoe kom nie.’ “Toe sê die man: ‘Dan smeek ek u om ten minste net vir Lasarus na my huis toe te stuur. U sien, ek het nog vyf broers. En hulle is ook vinnig op pad na hierdie plek van lyding toe. Laat Lasarus hulle asseblief gaan waarsku voor dit te laat is.’ “‘Hoekom? Hulle het mos die Bybel,’ het Abraham geantwoord. ‘Hulle moet maar net luister na wat God daar in die wet en deur sy profete vir hulle sê.’ “‘Ag, vader Abraham, dit sal soveel beter wees as iemand wat reeds hier aan die ander kant van die dood leef na hulle toe gaan en hulle waarsku. Dan sal hulle hulle boeglam skrik en begin luister,’ sê die man toe. “‘Nee, jy’s verkeerd,’ het Abraham vinnig geantwoord. ‘As hulle hulle nie aan God se Woord steur nie, sal niks anders hulle oortuig nie, nie eens iemand wat uit die hemel daar by hulle opdaag nie.’” Toe sê Jesus vir sy volgelinge: “Dis nou maar eenmaal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink. Veral as hulle maak dat een van my klein kindertjies in die sonde val en die spoor byster raak. Sulke mense is dan beter daaraan toe in die middel van die see met ’n reuserots om die nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf. “Sorg dat jy elke dag op die regte pad bly. Wanneer dinge skeefloop tussen jou en ander gelowiges, gaan stel dit dadelik reg. Veral wanneer ’n ander gelowige ’n lelike ding aan jou doen. Gaan spreek hom daaroor aan. As hy jammer is daaroor, moet jy hom dadelik vergewe en daarvan vergeet. Ja, al doen hy sewe keer elke dag lelike dinge aan jou en hy kom sê sewe keer vir jou: ‘Ek is verskriklik jammer oor wat ek gedoen het. Vergewe my, asseblief,’ dan moet jy dit doen.” Toe sê Jesus se twaalf apostels vir Hom: “Here, dis so moeilik om al hierdie dinge te doen wat U sê. En ons geloof is so klein. Gee ons asseblief nog geloof.” “Julle sê julle wil meer geloof hê,” het Jesus dadelik gereageer. “Weet julle, julle hoef nie baie geloof te hê om groot dinge vir die Here te doen nie. ’n Klein bietjie is meer as genoeg. Gebruik dit net! Kyk, as julle geloof maar net so groot soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie vrugteboom gesê het: ‘Skuif! Gaan staan daar in die middel van die see.’ Dan sou die boom na julle geluister en see toe geskuif het.” “Wanneer julle iemand aanstel om in julle tuin te werk en om elke dag vir julle kos te maak, moet hy dit doen. As hy na ’n lang dag se werk in die tuin in die kombuis kom, sê julle mos nie vir hom nie: ‘Toemaar, jy hoef nie meer kos te maak nie. Kom sit gou hier op my plek aan die tafel. Omdat jy so moeg is, sal ek maar kos maak.’ “Nee, natuurlik nie. Julle sal eerder vir hom sê: ‘Toe, kry gou-gou die aandete gereed. Trek vir jou skoon klere aan en kom bedien ons. As ek en my gaste klaar geëet het, moet jy ook sorg dat alles opgeruim is. Daarna kan jy iets gaan eet.’ “Is dit nodig om daardie werker te smeek om elke dag in die tuin te werk of om die kos te maak? Moet julle heeltyd op julle knieë staan en hom soebat? Nee, natuurlik nie. “So gaan dit ook met julle wanneer julle My dien. Wanneer julle alles gedoen het wat Ek vir julle gesê het om te doen, hoef Ek mos nie ’n sertifikaat vir goeie diens aan julle te gee nie. Nee, julle is mos in my diens. Julle moet doen wat Ek sê. Al wat julle van julle kant af hoef te sê, is: ‘Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Daarom is dit ons plig om alles te doen wat Hy sê.’” Op pad Jerusalem toe het Jesus deur Samaria en Galilea gereis. In een van die dorpe het tien melaatses op Hom afgekom. Hulle het ’n lelike velsiekte gehad wat veroorsaak het dat hulle nie tussen ander mense kon bly nie. Hulle het ’n hele ent van Jesus af gaan staan omdat hulle nie toegelaat is om naby gesonde mense te kom nie. Hulle roep toe hard uit: “Jesus, groot Leermeester, kry ons asseblief tog jammer!” Jesus sê toe vir hulle: “Gaan dadelik na die priester toe. Laat hy vir julle ’n sertifikaat gee as bewys dat julle gesond is.” Op pad soontoe het hulle melaatsheid verdwyn. Hulle vel was skielik weer normaal. Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê. Hy was ’n Samaritaan. Toe sê Jesus vir hom: “Julle is mos tien persone wat nou net gesond geword het. Nou waar’s die ander nege dan? Dit lyk My hulle glo nie God het hulle eens en vir altyd genees nie. Daarom dat hulle nie omgedraai en kom dankie sê het soos jy nie. Jy begryp baie beter as daardie nege Israeliete wie Ek is. Staan nou op en gaan in vrede. Jou geloof het gemaak dat jou saak met God nou in orde is.” Die Fariseërs het op ’n dag vir Jesus gesê: “Kyk, jy praat so baie oor God se nuwe wêreld. Sê vir ons, wanneer gaan dit aanbreek?” “Julle verstaan My heeltemal verkeerd,” het Jesus geantwoord. “Wanneer Ek vir julle sê dat God se nuwe wêreld hier is, bedoel Ek nie dat dit iets is wat julle met die blote oog kan sien nie. Mense kan byvoorbeeld nie sê: ‘God se nuwe wêreld is in daardie dorp’ of: ‘God se nuwe wêreld is hier in ons stad’ nie. Nee, God se nuwe wêreld is iets wat binne-in jou lewe gebeur. Wanneer jy aan my kant kom staan, verander jou lewe van binne af. Dan is jy ’n burger van God se nuwe wêreld.” Toe draai Jesus na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Ek moet egter nog iets oor God se nuwe wêreld vir julle sê. Daar gaan wel ook ’n dag aanbreek wanneer almal hierdie nuwe wêreld met hulle eie oë sal sien. Dit is op dié dag wanneer Ek, die Seun van die mens, terugkom na hierdie wêreld toe. Maar totdat dit gebeur, wag daar swaar tye op julle. Baie dae sal julle bid dat die Seun tog moet terugkom, maar dit sal nie gebeur nie. “Moet julle nie steur aan almal wat gedurig sommetjies maak oor wanneer die Seun gaan terugkom nie. As iemand julle probeer wysmaak dat hulle weet, lag hulle uit. As hulle sê: ‘Kom, die Messias is in die stad,’ vergeet dit. Of as hulle sê: ‘Hy is daar anderkant,’ moenie die moeite doen om te gaan kyk nie. Moenie ’n woord daarvan glo nie. “Wees verseker: almal sal weet wanneer die Seun van God terugkom; almal. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en die hele hemelruim verlig. Dan kan jy ’n oomblik lank alles om jou sien. Wel, wanneer die Seun kom, sal almal Hom net so helder en duidelik sien. Maar voordat dit alles gebeur, lê daar eers ’n baie moeilike tyd vir My voor. Eers moet die mense My verwerp en doodmaak. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel. Julle almal ken die verhaal van Noag. Wel, terwyl Noag die ark gebou het, het die ander mense om hom normaal aangegaan asof niks gebeur nie. Al wat vir hulle saak gemaak het, was om elke dag te eet en te drink en om te wonder wie nou weer met wie getrou het. Toe klim Noag in die ark. Daarna het dit begin reën en reën. Uiteindelik het alles weggespoel. Ja, daar het niks oorgebly nie. “Nog ’n voorbeeld: julle onthou mos nog vir Lot. In sy tyd het dit presies net so gegaan. Die mense het normaalweg met hulle lewens aangegaan. Hulle het besigheid gedoen, partytjies gehou, hulle lande bewerk en huise gebou. Toe gee Lot uit Sodom pad. Vuur en swael het op Sodom begin neerreën. Almal was dood. Dit sal presies net so gaan wanneer die Seun van die mens terugkom. Dan sal daar nie vir mense tyd wees om te vlug nie. As jy op jou stoep sit, moenie eers gou in jou huis ingaan om iets te vat nie. Dit gaan in elk geval nie help nie. En as jy buite op die lande werk, moenie eers teruggaan huis toe om skoon klere te gaan aantrek nie. Moet ook nie al jou kosbare besittings gaan haal nie. Nee, gee pad! Onthou wat met Lot se vrou gebeur het. Toe sy teruggekyk het na haar stad daardie dag toe God dit vernietig het, het sy op die plek in ’n soutpilaar verander. “Op daardie dag wanneer die Seun kom, sal dit te laat wees om gou met God te probeer vrede maak. Sorg dat julle lewe nou al in orde is. As julle God nou al dien, sal julle op daardie dag gered word. Maar as julle nou niks met Hom te doen wil hê nie, sal julle op daardie dag veroordeel word. “Wanneer die Seun terugkom, sal dit ’n dag van groot skeiding tussen mense wees. In dieselfde huis sal die ma byvoorbeeld gereed wees vir my koms, maar nie die pa nie. Ek sal haar saamvat na my splinternuwe wêreld toe en hom los. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Ek sal die een kom haal en die ander een los. Dieselfde sal ook by die werk gebeur. Twee mans sal saam werk - die een sal reg wees en die ander een nie. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat Ek jou kan saamvat wanneer Ek weer kom!” Toe vra die dissipels: “Waar gaan al hierdie dinge gebeur?” “Sommer daar tussen julle,” het Jesus geantwoord. “Daar waar die mense is, sal die aasvoëls op hulle almal toesak.” Jesus het vir sy volgelinge die volgende verhaal vertel om hulle te leer om aan te hou bid: “Eendag was daar ’n baie kwaai regsgeleerde. Hy was vir g’n mens in sy stad bang nie. Ook nie eens vir God nie. In dieselfde stad het daar ook ’n vrou gebly wie se man dood was. Sy was betrokke in ’n regsgeding met iemand anders. Sy het kort-kort na die hardkoppige regsgeleerde toe gekom en hom gesmeek om haar saak vir haar te hanteer. Maar hy het botweg geweier. Op ’n dag het hy egter vir homself gesê: ‘Ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek’s vir niemand bang nie, nie eens vir God nie. En tog dink ek ek gaan daardie weduwee help. Wie weet, netnou maak sy my naam sleg, of dalk kom gee sy my sommer nog voor almal ’n oorveeg.’” Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help? Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie? Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid. “Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan.” Baie “godsdienstige” mense het gedink hulle saak met God is in orde omdat hulle allerhande godsdienstige wette streng gehoorsaam. Hierdie mense het op almal neergesien wat nie al dié wette gehou het nie. Jesus het net mooi niks van hierdie godsdienstige snobisme gehou nie. Hy het toe vir die mense die volgende verhaal vertel: “Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.) “Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie. “‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’ “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’” Toe sê Jesus vir die mense wat na Hom luister: “Hierdie tollenaar se gebed is dadelik verhoor. God het sy lewe in ’n oogwink splinternuut gemaak. Maar die Fariseër het met leë hande daar weggestap. Hy het gedink hy lewe goed genoeg om ’n plek in die hemel te kry. Maar dit werk nie so nie. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red, sal nog baie spyt wees. Maar almal wat voor God kom buig en op Hom vertrou om hulle lewe splinternuut te maak, sal verhoog word.” Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie. Toe Jesus dit sien, het Hy egter dadelik vir sy dissipels gesê: “Wag! Wat vang julle aan? Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.” Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.” “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.” Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?” Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.” Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.” “Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al. Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.” Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is. Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan. Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.” Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie. Later, toe Jesus naby Jerigo kom, sit daar ’n blinde langs die pad en bedel. Die man het agtergekom ’n groot klomp mense stap by hom verby. “Wat is aan die gang?” vra hy toe. “Jesus van Nasaret gaan hier verby,” het iemand geantwoord. Die blinde man het dadelik hard begin skree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” Maar die mense het vir hom gesê: “Bly stil! Hou op om so te skree!” Dit het nie gehelp nie. Die blinde het net nog harder geskree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” Jesus gaan staan toe stil en sê vir die mense: “Bring daardie man wat so skree na My toe.” Toe die blinde naby Jesus kom, vra Hy hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Ag, Here, ek wil so graag sien!” antwoord hy. “Nou toe, sien dan! Jou wens het waar geword omdat jy glo,” het Jesus gesê. Dadelik kon die man weer sien. Hy kon sy oë nie glo nie. Vol blydskap het hy by die res van die skare ingeval en agter Jesus begin aanstap. Hy het oor en oor vir God dankie gesê omdat Hy so goed vir hom is. Die mense was net so opgewonde. Hulle het ook God se Naam grootgemaak oor wat gebeur het. Later het Jesus deur Jerigo gestap. Een van die mense wat daar gebly het se naam was Saggeus. Hy was die hoof van die berugte tollenaars wat belasting ingevorder het, en ’n skatryk man. Toe Saggeus hoor dat Jesus deur die dorp stap, het hy probeer om Hom tussen die mense deur te sien te kry. Maar hy kon nie, want hy was te kort. Toe maak hy ’n plan: hy het gou vooruitgehardloop en in ’n wildevyeboom gaan klim wat langs die pad gestaan het waar Jesus sou verbyloop. Toe Jesus by die wildevyeboom kom, het Hy skielik gaan staan, opgekyk en gesê: “Saggeus, klim dadelik af. Maak gou! Want Ek moet vandag by jou kom oorbly.” Saggeus het omtrent uit die boom geval so vinnig het hy afgeklim. Hy was baie opgewonde dat Jesus besluit het om juis by hom te kom bly. Natuurlik was die mense van die dorp glad nie bly oor Jesus se keuse nie. “Wat vang hy aan? Hoekom gaan bly hy by die grootste skelm in die dorp?” Maar Saggeus se lewe het daardie dag heeltemal verander. Hy het voor die Here gaan staan en vir Hom gesê: “Kyk, van nou af gaan ek anders lewe. Daarom gee ek nou die helfte van alles wat ek besit vir die armes. In die verlede het ek baie mense verkul met geld. Maar ek gaan daardie geld vierdubbel aan hulle terugbetaal.” Jesus sê toe: “Vandag het God jou lewe splinternuut gemaak omdat jy My in jou huis toegelaat het. Jy tel nou ook onder die kinders van Abraham. Almal wat in My glo, is sy nageslag. Jy ook! Ek, die Seun van die mens, het gekom om mense te soek wat op die verkeerde pad leef. Ek maak hulle lewens splinternuut.” Terwyl almal so na Jesus sit en luister, het Hy vir hulle ’n storie vertel. Hulle was nou nie meer ver van Jerusalem af nie en party van sy volgelinge het gedink dat God se nuwe wêreld sommer nou enige oomblik sou aanbreek. “Daar was eendag ’n baie belangrike man. Hy moes toe vir ’n lang tyd van sy grond af weggaan om die hoof te word van ’n koninkryk in ’n naburige gebied. Voor sy vertrek het hy tien van sy werkers laat roep. Hy het toe tien sakkies vol geld gevat en aan elkeen van hulle een gegee. ‘Gaan doen nou goeie besigheid met my geld. Wanneer ek terugkom, moet julle vir my kom sê wat julle daarmee gemaak het.’ “Dié ryk man was nie gewild onder die burgers van die land nie. Toe hulle hoor dat hy vertrek het, het hulle ’n boodskap agter hom aangestuur: ‘Ons hoop nie dat jy ook ons leier word nie, want ons hou niks van jou nie.’ “Kort nadat die man die heerser van die naburige gebied geword het, het hy na sy huis toe teruggekeer. Hy roep toe sy werkers bymekaar om by hulle te hoor wat hulle met sy geld gemaak het. “Die eerste een kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het, gaan vertiendubbel. Hier is nou tien maal soveel as wat u vroeër vir my gegee het.’ “‘Ongelooflik! Jy was getrou aan my selfs tot in die heel kleinste dingetjies. Daarom stel ek jou van nou af aan as die hoof oor tien stede in my landgebied.’ “Die tweede werker kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het vyf maal meer gemaak.’ “Die heerser was bly daaroor: ‘Van vandag af maak ek jou die hoof van vyf stede in my landgebied.’ “Werker nommer drie het toe sy opwagting gemaak en gesê: ‘Ag, Meneer, hier is al die geld veilig terug wat u aan my gegee het. Omdat ek weet u is ’n harde man, het ek besluit om u geld veilig weg te steek. Want u is iemand wat vat sonder om te gee en wat oes waar u nie geplant het nie.’ “Die heerser sê toe: ‘Jy is regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is baie streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie maar my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie man se geld weg en gaan gee dit aan daardie werker wat my geld vertiendubbel het.’ “Die ander werkers was baie verbaas daaroor: ‘Maar, Meneer, hy het dan mos al klaar tien maal soveel geld as aan die begin. Waarom moet hy nog kry?’ “Toe antwoord die heerser: ‘Almal wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en hard te werk met dit wat hulle het, sal nog meer kry. Maar wie niks doen nie, sal uiteindelik ook nog die bietjie verloor wat hulle het. “‘En wat daardie spul mense hier in die omgewing betref wat nie wou hê ek moet die heerser word nie - bring hulle hier en maak hulle dood, sommer hier reg voor my.’” Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’” Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry. Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?” “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit. Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit. Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het. Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.” ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!” Jesus antwoord: “En waarom nie? As hulle sou stilbly, sou die klippe hier langs die pad dieselfde oor My uitroep!” Toe Jesus naby Jerusalem kom, was Hy baie hartseer. Terwyl die trane oor sy wange loop, sê Hy: “Jerusalem, as jy net jou oë wil oopmaak en besef wie vandag na jou toe kom. Dan sal God se vrede regtig hier aanbreek. Maar nou is jy stokblind! Daarom lê daar swaar tye vir jou voor. Een van die dae sal jou vyande hulle hier om die stad kom ingrawe. Hulle sal jou omsingel en al jou inwoners doodmaak. G’n kind of kraai sal oorbly nie. Ja, hierdie hele stad sal met die grond gelykgemaak word. Dis jou straf omdat jy jou rug vir My gedraai het. Ja, dié dag toe Ek by jou besoek kom aflê het, wou jy My nie ontvang nie.” In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die groot tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Hier op die tempelplein is offerdiere aan die mense verkoop wat nie self diere by hulle gehad het nie. Jesus het skielik begin om al die handelaars weg te jaag. Hy sê toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Mense moet My kom aanbid hier in my huis. Julle het dit egter die bymekaarkomplek van ’n klomp skelms gemaak.’” Daarna het Jesus elke dag na die tempel toe gekom om vir die mense te vertel van God se nuwe wêreld. Dit het al die belangrikste godsdienstige leiers van die stad woedend gemaak. Hulle kon dit nie verdra dat Jesus daar in hulle hoofkwartier sulke dinge sê nie. Daarom het hulle besluit om Hom dood te maak. Maar hulle was magteloos, want al die mense het aan Jesus se lippe gehang. Eendag toe Jesus in die tempel besig was om die mense te leer wat God van hulle vra, het ’n klomp van die godsdienstige leiers en ’n paar ander belangrike mense uit Jerusalem ook by die skare aangesluit. Hulle vra toe: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?” Maar Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers gou ’n vraag vra. Sê My, wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?” Die leiers het dadelik besef hulle is in ’n hoek. Hulle sê toe onderlangs vir mekaar: “Kyk, as ons sê God het Johannes die reg gegee, sal Jesus vir ons vra: ‘Waarom het julle dan nie geglo wat hy gesê het nie?’ As ons egter antwoord dat die mense Johannes die reg gegee het om te doop, sal die volk ons uitmekaarskeur. Hulle almal dink mos dat Johannes ’n profeet was wat sy gesag van God af gekry het.” Om uit die moeilikheid te bly antwoord hulle toe: “Nee, ons weet nie.” Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Wel, dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.” Daarna het Jesus vir die mense die volgende verhaal vertel: “Daar was eendag ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het. Hy moes kort daarna op ’n reis na ’n ver land gaan. Hy verhuur toe die wingerd aan ’n groep ander boere. Die eienaar het met hulle ooreengekom dat hulle hom ’n deel van die druiwe as huur vir die grond sou betaal. “Later, toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar een van sy werkers om die deel wat hy moes kry te gaan haal. Maar die arme werker is deur die boere aangerand en weggejaag. “Toe stuur die eienaar een van sy ander werkers na die plaas toe. Maar presies dieselfde het met hom gebeur. Hy is pimpel en pers geslaan en van ’n kant af beledig. Daarna het die boer ’n derde werker na sy plaas toe gestuur. Maar hy is halfdoodgeslaan en ook met leë hande van die plaas af weggejaag. “Toe sê die eienaar vir homself: ‘Wat moet ek nog doen? Al wat nog oorbly, is dat ek my seun vir wie ek so lief is na hulle toe moet stuur. Hulle behoort mos vir hom net soveel respek te hê as vir my.’ “Maar toe die huurders die seun sien aankom, het hulle gou-gou koppe bymekaargesit: ‘Kyk, dis nou ons kans. As ons daardie seun doodmaak, sal ons later self die grond in die hande kan kry.’ “Toe pak die spul boere die seun en sleep hom tot buite die wingerd. Daar het hulle hom doodgemaak.” Jesus vra toe vir die mense: “Wat dink julle sal die eienaar met die klomp boere doen wanneer hy terugkom na sy wingerd toe? Kom Ek sê vir julle: hy sal al daardie boere doodmaak en sy wingerd aan ander mense gee.” Maar ’n klomp van die godsdienstige leiers wat na Hom geluister het, het vinnig geantwoord: “Nee, so iets sal nooit gebeur nie! Jy probeer maak asof ons soos daardie slegte boere in die verhaal is.” Jesus het hulle egter reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Julle is mos sulke danige kenners van die Bybel. Wel, sê ’n bietjie vir My wat die volgende teks beteken: ‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik nie en sommer eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.’ “Oppas! Elkeen wat op hierdie ‘klip’ val, gaan bitter seerkry. Maar elkeen op wie hierdie ‘klip’ beland, gaan morsdood wees. Van hulle gaan daar net mooi niks oorbly nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het die skimp gevang. Hulle het besef dat Jesus hierdie teks op Homself toegepas het en dat hulle die mense is wat Hom verwerp. Hulle was woedend daaroor. Hulle wou Hom sommer daar en dan in die tronk stop. Maar die gewone mense was baie beïndruk met Jesus. Daarom kon die leiers in daardie stadium niks aan Hom doen nie. Die godsdienstige leiers wou hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?” Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle. “Nou ja, as hierdie geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Gee hom wat hy vra. Maar onthou: julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom. Daarom moet julle julleself aan God gee. Die keiser is geregtig op julle geld, maar God is geregtig op julle hele lewe.” Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het. Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.” ’n Paar van die skrifkenners wat ook na Jesus geluister het, was baie beïndruk met wat Hy gesê het: “Mooi so, Leermeester. U het goed geantwoord. Kyk, daardie klomp Sadduseërs is skoon stil.” Toe sê Jesus vir die godsdienstige leiers wat gedurig net regsit om Hom te probeer uitvang: “Ek het nou ’n vraag vir julle. Hoekom sê almal die Messias is die seun van Dawid? Dawid self noem Hom dan in een van sy psalms ‘my Here’. Julle ken mos Dawid se bekende woorde: ‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit hier op die spesiale ereplek langs My totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’ “Verklaar dit dan nou vir My: As Dawid die Messias ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd ook nog Dawid se seun wees?” Maar niemand het dit gewaag om daarop te antwoord nie. Terwyl ’n groot groep mense na Jesus geluister het, het Hy na sy getrouste volgelinge gedraai en vir hulle gesê: “Julle moet lig loop vir al daardie groot kenners van die Bybel. Kyk, hulle loop oral rond met hulle blink kerkklere en hou daarvan dat almal hulle op straat groet. Hulle maak ook baie seker dat mense hulle in godsdienstige plekke raaksien. En hulle geniet dit om die middelpunt van belangstelling by elke funksie te wees. Net om te wys hoe vroom hulle is, gaan eet hulle die arm weduwees se kos op en bid lang gebede in die openbaar. Die skynheilige spul! God sal hulle baie swaarder as al die ander straf.” Daarna het Jesus gekyk hoe al die ryk mense na die groot skatkis in die tempel toe kom om hulle geldelike bydraes daarin te gooi. So tussen al die mense deur merk Hy toe op hoe ’n arm weduwee vinnig ’n paar sent in die skatkis gooi en wegstap. “Sien julle die weduwee wat daar van die skatkis af wegstap? Wel, sy het so pas die grootste skenking ooit aan die tempel gemaak. Haar paar sente was meer as al die sakke vol geld wat die ryk mense elke dag soontoe aandra. Hulle gee uit hulle oorvloed so ’n ietsie weg, maar sy het alles vir God gegee wat sy op haar naam gehad het. Nou het sy nie meer ’n sent op haar naam oor nie.” Daarna het party van Jesus se volgelinge met mekaar gestaan en praat oor hoe mooi die tempel is. Hulle het hulle verkyk aan die reuseklippe en aan al die pragtige versierings. Jesus sê toe: “Een van die dae sal daar niks oor wees van alles wat julle nou hier voor julle eie oë sien nie. Hierdie gebou gaan tot op die grond afgebreek word.” Toe sê sy volgelinge benoud vir Hom: “Leermeester, sê vir ons wanneer dit gaan gebeur. Sê asseblief ook vir ons hoe ons sal weet wanneer die einde van die wêreld naby is.” “Wees versigtig vir daardie mense wat allerlei stories hieroor opmaak,” sê Jesus toe vir hulle. “Baie mense sal sommer uit die bloute hier by julle opdaag en sê: ‘Kyk, dit is Ek, die Messias! Nou is God se nuwe wêreld uiteindelik hier!’ Maar moenie na hulle luister nie. Hulle is ’n spul leuenaars. “Wanneer mense begin oorlog maak en mekaar probeer uitwis, is die einde ook nog nie daar nie. Moenie dan paniekerig raak nie. Hierdie dinge gaan nog alles gebeur. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser probeer ontslae raak. Daar sal ook op baie plekke aardbewings wees en kos sal baie skaars raak. Hongersnood sal aan die orde van die dag wees. So ook allerhande siektes. Groot rampe sal die aarde tref. Al dié slegte dinge sal die aarde teister. “Net voor al hierdie dinge gebeur, sal julle ook baie swaarkry. Ongelowiges sal julle vang en julle mishandel. En mense wat maak asof hulle godsdienstig is, sal julle voor hulle leiers aankla. Baie van julle sal in tronke gegooi word. Julle sal ook in die howe en voor hooggeplaaste mense gedaag word omdat julle in My glo. Maar moenie bekommerd wees nie. Daar sal wonderlike geleenthede wees om vir My te getuig. Moenie ’n slapelose nag hê oor wat julle moet sê nie. Ek sal julle saak hanteer. Ek sal presies die regte woorde vir julle gee om te sê. Ek sal julle soveel wysheid gee dat julle vyande se monde van verbasing sal oophang. Hulle sal nie weet wat om julle te antwoord nie. “Die slegte nuus is dat julle vyande partykeer uit julle eie huis sal kom. Julle ouers en julle broers en susters, ja, julle eie familie en julle beste vriende sal julle in die rug steek. Hulle sal julle soos misdadigers uitlewer. Party van hulle sal selfs so ver gaan om julle dood te maak. “Die mense sal julle haat en met julle spot omdat julle my volgelinge is. Maar moenie bang wees nie. Daar sal nie ’n haar uit julle koppe val sonder God se wete nie. Hou maar net aan glo. Onthou: God se nuwe wêreld wag op almal wat tot die bitter einde toe volhard.” “As julle die dag sien dat ’n vreemde leër besig is om Jerusalem te omsingel, moet julle weet dat sy dae getel is. Dan moet julle so gou moontlik daar padgee. Gaan kruip iewers in die heuwels in Judea weg. Maak net dat julle wegkom! As julle dalk buite Jerusalem bly en op pad soontoe is, draai dadelik om. Want dit sal ’n verskriklike tyd wees. God se oordeel sal dan op Jerusalem uitgegiet word net soos die profete lankal gewaarsku het. “Ek kry veral vroue jammer wat dan verwag of wat nog klein babatjies het. Hulle gaan bitter swaarkry! Want oral gaan daar groot bloedvergieting en lyding wees. Dit sal ’n tyd van wraak wees soos Jerusalem nog nooit beleef het nie. Baie mense sal in daardie tyd doodgemaak word of as gevangenes na ander lande toe weggevat word. Ander volke sal in Jerusalem instroom en dit onder hulle voete vertrap. Hierdie dinge sal aanhou totdat God uiteindelik besluit dis genoeg.” “Op ’n dag sal verskriklike dinge begin gebeur. “Die son, die maan en die sterre sal skielik onheilspellend begin verander. Hulle sal nie meer dieselfde lyk nie. Hulle sal begin skud en uit die hemel val. “Oral op die aarde sal chaos losbreek. Die natuurwette wat alles in die skepping beheer, sal skielik hulle krag verloor. Dan sal die see oor almal begin spoel. “Al hierdie dinge sal die mense rasend van vrees maak. Almal sal doodbang wees. Maar dan, skielik, sal die Seun daar wees. Almal sal Hom sien wanneer Hy met sy hemelse krag en heerlikheid op die toneel verskyn. “Wanneer al hierdie dinge begin gebeur, moet julle nie bang wees nie. Want God se nuwe wêreld waarna julle so uitgesien het, is dan voor die deur. Begin solank kyk of julle nie al die Seun sien aankom nie, want Hy gaan enige oomblik op die toneel verskyn! “Julle het netnou gevra wanneer al hierdie dinge gaan gebeur. Wel, luister gou na hierdie voorbeeld uit die natuur. Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle blaartjies en blommetjies begin maak, weet hy dat die somer net om die draai is. Nou ja, al hierdie dinge wat Ek so pas vir julle vertel het, moet vir julle soos die ‘blaartjies en blommetjies’ wees wat sê dat God se nuwe wêreld voor die deur is. “Luister mooi. Wat Ek nou sê, is spesiaal vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dis net praatjies nie. Julle dink die hemel en die aarde staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde nog honderd maal vaster staan. “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie. “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef. Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.” In daardie tyd het Jesus elke dag na die tempel toe gegaan om met die mense te praat oor God se nuwe wêreld. In die aande het Hy op die Olyfberg net buitekant Jerusalem gaan slaap. ’n Groot skare mense het al vroeg elke oggend na die tempel toe gestroom om te hoor wat Hy sê. Die paasfees was nou voor die deur. Tydens hierdie fees het die Jode ’n lam geslag en ongesuurde brood geëet. Hulle het dan teruggedink aan hoe God hulle voorvaders daar uit Egipte bevry het. Die godsdienstige leiers was baie omgekrap oor alles wat Jesus in die tempel gesê het. Hulle het toe besluit dis genoeg. Jesus moes doodgemaak word. Maar hulle het nie mooi geweet hoe nie, want die skare was in vervoering oor Hom. Toe kry hulle hulp uit ’n onverwagse oord. Judas Iskariot, een van Jesus se eie dissipels, het agteraf na hulle toe gekom en vir hulle gesê dat hy hulle sou help om Jesus te vang. Die duiwel self het in Judas ingevaar. Die godsdienstige leiers was in ekstase oor Judas se aanbod. “Ons sal jou baie goed betaal,” het hulle vir hom gesê. Hulle het toe saam ’n plan uitgewerk hoe om Jesus te vang. “Ek sal wag vir die regte oomblik, dan sal ek vir julle ’n teken gee sodat julle Hom kan arresteer,” het Judas vir hulle gesê. Die eerste dag van die paasfees waarop die paaslammetjies geslag moes word, het toe aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.” “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.” “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’ “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.” Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.” Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.” Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.” Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan. “Maar Ek het ook slegte nuus. Een van julle wat hier saam met My aan die tafel sit, gaan My nog in die rug steek. God het besluit dat Ek, die Seun van die mens, moet kom ly. Maar daar wag groot probleme op dié een wat gaan maak dat Ek in die hande van my vyande beland.” Die dissipels was baie geskok daaroor. Hulle het onderlangs vir mekaar gevra: “Wie van ons sal so ’n verskriklike ding aanvang?” Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die dissipels aan die stry geraak oor wie van hulle die belangrikste is. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is. Maar julle moenie soos hulle wees nie. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. “Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan. Daarom het Ek ’n wonderlike geskenk vir julle. Ek gaan vir julle elkeen ’n spesiale plek gee daar in die splinternuwe wêreld wat God aan my sorg toevertrou het. Daar sal ons almal saam feesvier. Julle sal die eregaste aan my tafel wees en saam met My eet en drink. Ja, julle sal selfs saam met My oor Israel se finale lot besluit.” Jesus draai toe na Simon Petrus toe: “Simon! My liewe Simon, as jy net weet hoe hard die duiwel probeer om julle uit my hand uit te ruk. Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is.” Petrus antwoord toe vinnig: “Here, U moet U nie bekommer nie. My geloof is glad nie so klein nie. Ek sal deur dik en dun by U staan, ook al moet U tronk toe gaan of doodgemaak word.” Toe antwoord Jesus hom: “Petrus, moenie so selfversekerd wees nie. Ek sê vir jou, vannag nog sal jy jou rug vir My draai. Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Daarna draai Jesus na die ander dissipels toe en sê vir hulle: “Onthou julle hoe Ek julle ’n ruk gelede uitgestuur het om vir die mense te gaan sê God se nuwe wêreld is hier? Wel, Ek het toe vir julle gesê om nie ’n beursie vol geld of ekstra klere saam te vat nie. Sê My, het julle toe iets kortgekom? Het julle een aand honger gaan slaap?” “Nee!” het hulle soos een man geantwoord. “Maar kyk, vannag is alles anders! Nou moet julle al julle geld bymekaarmaak. Pak julle klere in. En as julle nie ’n wapen het nie, sorg dat julle een in die hande kry. Julle ken mos daardie woorde in die Bybel: ‘Hy is soos ’n misdadiger behandel’? Wel, Ek gaan dit nou waar laat word. Die tyd is nou hier!” Toe sê die dissipels vir Jesus: “Ons sal doen wat U sê. Ons het darem twee swaarde hier tussen ons as dinge regtig handuit ruk.” “Dis meer as genoeg,” het Jesus geantwoord. Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.” Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond. Daarna draai Jesus na al die belangrike godsdienstige leiers en die soldate toe wat opgedaag het om Hom te kom vang: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Is Ek dalk ’n gevaarlike skelm dat julle met al hierdie wapens op My toesak? Dagin en daguit het Ek daar in die tempel vir julle gepreek. Hoekom het julle My nie toe gevang nie? Hoekom moet julle hier in die middel van die nag op My afkom asof Ek ’n misdadiger is? Maar, nou ja, dis mos die oomblik waarvoor julle al so lank gewag het. Nou is dit regtig ’n baie donker uur.” Die mense het Jesus gevange geneem. Van daar af is hulle met Hom reguit na die hoëpriester se huis toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy het gesien dat ’n klompie mense ’n vuur daar in die agterplaas gemaak het om hulle warm te hou. Hy het toe tussen hulle gaan sit. Een van die vroue wat in die hoëpriester se kombuis werk, het hom dadelik herken. Sy sê vir die ander: “Ek het daardie man al saam met Jesus van Nasaret gesien. Hy is een van sy vriende.” Maar Petrus het dit dadelik ontken en gesê: “Vroumens, jy maak ’n groot fout! Ek en daardie man is glad nie vriende nie.” ’n Rukkie later het iemand anders ook vir Petrus herken en vir hom gesê: “Maar jy is dan een van die volgelinge van daardie Jesus!” “Kyk, jy’s heeltemal laf!” het Petrus vinnig gereageer. ’n Uur of wat later het nog iemand vir die ander mense gesê: “Sowaar, daardie man is ook ’n volgeling van daardie man van Nasaret. Luister net na sy aksent. Hulle klomp daar in Galilea sê mos sekere woorde anders as ons hier in Judea.” “Hoor hier, ek was nog nooit eens naby Hom nie,” het Petrus geantwoord. Terwyl hy nog praat, het ’n haan iewers in die vroeë oggendure gekraai. Jesus het geweet dat Petrus so ’n entjie van Hom af tussen die mense staan. Die Here draai toe om en kyk hom stip in die oë. Toe tref die Here se woorde van vroeër die aand vir Petrus soos ’n voorhamer: “Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Petrus het toe in die donker ingehardloop en bitterlik gehuil. Intussen het die spul wat vir Jesus gevang het met Hom gespot en Hom rondgestamp. Hulle het Hom geslaan en gesê: “Toe, sê vir ons wat is die man se naam wat jou slaan. Jy is mos so ’n groot profeet!” Hulle het Jesus ook beledig en allerhande godslasterlike dinge teenoor Hom kwytgeraak. Die volgende oggend het ’n paar godsdienstige leiers besluit om Jesus voor die Joodse Raad te bring. ’n Noodvergadering van die Joodse Raad waarop al die belangrikste godsdienstige leiers sitting gehad het, is dadelik belê. Toe Jesus voor hulle kom, sê hulle vir Hom: “Kyk, moenie met ons speletjies speel nie. Sê reguit vir ons: is jy die Christus, die Een wat deur God na ons toe gestuur is, of nie?” “Wat help dit Ek antwoord julle? Julle sal My in elk geval nie glo nie,” het Jesus gesê. “En as Ek julle iets vra, sal julle My ook nie antwoord nie. Maar kyk, van nou af sal alles begin verander. Julle sal nog die Seun van die mens op die belangrikste plek in die hemel sien sit. Hy sal daar langs God wees aan wie al die mag behoort.” “Dink jy regtig jy is die Seun van God?” “Julle sê Ek is!” Toe het die lede van die Joodse Raad ontplof van woede. “Wat meer het ons nodig? Nou het ons mos uit sy eie mond gehoor dat hy ’n godslasteraar is. Hy maak asof hy God is.” Toe staan al die godsdienstige leiers op en vat Jesus na Pilatus toe. Hy was die Romeinse goewerneur. Daar aangekom, het hulle Jesus van ’n kant af beskuldig: “Hierdie man het ons volk op ’n dwaalspoor gebring. Hy is ’n vals boodskapper van God. Boonop stook hy die mense op om nie belasting aan die keiser te betaal nie. Hy vertel links en regs dat hy die Messias is. Hy dink ook hy is die koning, nie die keiser nie.” Pilatus vra toe vir Jesus: “Is al hierdie dinge waar? Dink jy regtig jy is die koning van die Jode?” “U het dit gesê,” het Jesus geantwoord. “Ag nee wat, hy is onskuldig. Hy het niks verkeerds gedoen nie,” het Pilatus vir die godsdienstige leiers en die skare gesê wat om hom saamgedrom het. Maar die godsdienstige leiers was glad nie daarvoor te vinde nie. “Nee, hierdie man is baie gevaarlik. Hy stook almal op, van Galilea af tot hier in Jerusalem.” Toe Pilatus hoor dat hulle van Galilea praat, vra hy dadelik: “Kom hy dan uit Galilea?” Toe almal ja sê, het Pilatus besluit om Jesus na Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, te stuur, want hy was ook in daardie tyd in Jerusalem. Toe Jesus by Herodes aankom, was hy bly. “Aha! Uiteindelik kry ek die man te sien van wie ek so baie gehoor het,” het Herodes gesê. “Nou toe, doen gou vir my die een of ander groot teken.” Jesus het egter net daar gestaan sonder om enigiets te sê. Herodes het Hom die een ding na die ander gevra, maar Hy het niks geantwoord nie. Die godsdienstige leiers en die kenners van die Skrif wat ook daar was, het hierdie kans benut om Jesus van alles wat sleg is te beskuldig. Later was Herodes baie vies dat Jesus hom ignoreer. Hy en sy soldate het Hom sleggesê en rondgestamp. Toe het hulle vir Jesus deftige klere aangetrek. “Jy wil mos so graag ’n koning wees. Gaan wys nou vir Pilatus hoe lyk jy met jou koningsklere,” het Herodes spottend vir Jesus gesê en Hom teruggestuur. Terloops, op daardie dag het Pilatus en Herodes die strydbyl begrawe en goeie vriende geword. Kort daarna het Pilatus al die belangrikste godsdienstige leiers van die Jode na hom toe ontbied. Hy sê toe vir hulle: “Kyk, julle het vir my kom sê dat hierdie Jesus ’n moeilikheidmaker is wat julle mense opstook. Ek het mooi na al die feite gekyk en agtergekom dat dit nie waar is nie. Hierdie man is onskuldig. As julle my nie wil glo nie, gaan vra dan vir Herodes. Hy het ook vir Jesus ondervra. Herodes het my laat weet dat hierdie man niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie. So, kom ek sê vir julle wat ek gaan doen: ek sal dat die soldate hom ’n ordentlike drag slae gee. Maar daarna laat ek hom los.” Pilatus se voorstel het glad nie byval gevind by die skare nie. Hulle het hard begin skree: “Weg met daardie man! Laat Barabbas los!” Barabbas was in die tronk omdat hy vroeër in Jerusalem aan ’n opstand teen die Romeine deelgeneem het. Boonop was hy ook ’n moordenaar. Pilatus wou dit nie doen nie. Daarom het hy weer probeer om die skare te oortuig dat Jesus losgelaat moes word. Maar hulle het hom doodgeskree: “Kruis toe met Jesus! Kruis toe met Jesus!” Toe maak Pilatus die skare ’n derde keer stil en vra vir hulle: “Sê my, wat het hierdie man gedoen wat so verskriklik is dat julle hom wil dood hê? Ek sal dat my soldate hom ’n goeie drag slae gee. Daarna sal ek hom loslaat.” Maar die skare wou nie kopgee nie. Hulle het net al harder geskree dat Jesus gekruisig moes word. Uiteindelik het Pilatus ingegee: “Nou goed dan, laat hom maar gekruisig word!” Pilatus het toe vir Barabbas losgelaat wat in die tronk was omdat hy ’n terroris en ’n moordenaar was. En vir Jesus het hy in die hande van die soldate en die mense oorgegee. Nou het die bloeddorstige skare eindelik hulle sin gekry. Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.” ’n Groot skare het ook agter Jesus aangestap. Baie vroue het hardop gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julle stad. Want vir julle en julle kinders gaan dit bitter swaar wees hier. Daar sal tye kom dat die mense sal sê: ‘Hoe gelukkig is daardie vroue wat nie kon kinders hê nie.’ Hulle sal dan die berge smeek: ‘Steek ons weg! Gee vir ons ’n plek waar ons veilig is teen ons vyande!’ En vir die heuwels: ‘Maak ons toe sodat hulle ons nie kan raaksien nie!’ Kyk, as Jerusalem se mense bereid is om My dood te maak, moet hulle niks goeds te wagte wees nie. Jerusalem is soos ’n klomp dooie takke wat op ’n hoop lê. Al wat nog oorbly, is dat hulle aan die brand gesteek moet word.” Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek. Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.” Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. “Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!” Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Later het een van die terroriste wat saam met Jesus gekruisig is ook met Hom begin spot: “Nou toe, waarvoor wag jy? As jy regtig die Messias is, kry ons hier af!” Die man aan die ander kruis het hom egter gou stilgemaak. “Het jy g’n respek vir God nie? Jy staan nou onder sy oordeel! Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers. Maar hierdie Man het net mooi niks verkeerds gedoen nie.” Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag, Here, sal U asseblief aan my dink wanneer U daar in God se woonplek aankom?” “Ek het baie goeie nuus vir jou,” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys toe. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak.” Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!” Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het. Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word. [51-52] Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het. *** Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was. Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het. Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou. Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was. Vroeg die Sondagoggend is die Galilese vroue na Jesus se graf toe met al die speserye wat hulle bymekaargesit het. Maar toe hulle daar aankom, wag daar ’n groot skok op hulle: die groot klip wat die graf verseël het, was weggerol en binne was daar geen teken van Jesus se liggaam nie. Terwyl die vroue nog staan en wonder wat aan die gang was, kom staan twee mans met helder, blink klere skielik by hulle. Die vroue het groot geskrik, want hulle het besef dit is engele. Hulle het dadelik hulle koppe uit eerbied laat sak. Toe vra die mans vir hulle: “Waarom kom soek julle die Lewende hier in ’n graf? Dis tog net ’n plek vir die dooies. “Onthou julle nog wat Jesus daar in Galilea vir julle gesê het: ‘Die Seun van die mens moet nog in die hande van ’n spul goddelose mense beland. Dan sal hulle Hom kruisig. Maar op die derde dag sal Hy weer lewendig word’?” “Ja, ons onthou!” het die vroue opgewonde geantwoord. Die vroue het daar en dan omgedraai en vinnig teruggegaan na die ander volgelinge van Jesus toe. Daar aangekom, het hulle vir die elf apostels en vir die ander mense vertel wat hulle gesien het. Terloops, die vroue wat eerste daar by die graf was, se name was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die ma van Jakobus. Daar was ook ’n paar ander vroue by hulle. Hulle was baie opgewonde oor wat met hulle gebeur het. Maar die apostels het hulle skepties gesit en aankyk. Hulle het nie ’n woord daarvan geglo nie. *** Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem. Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. Maar hulle het Hom nie herken nie. “Wat loop julle so ernstig en praat? En hoekom lyk julle so hartseer?” vra Jesus hulle. Kleopas, een van die twee, sê toe vir Hom: “Wat? Ek kan nie glo jy vra so iets nie. Jy kom dan nou uit Jerusalem uit. Het jy nie gehoor wat die afgelope naweek daar gebeur het nie?” “Wat?” vra Jesus toe. “Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig. Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood. “O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie? Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?” Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het. Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê: “Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop. ’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit. Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn. “Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!” Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle: “Ons het goeie nuus vir julle. Jesus leef! Hy het aan Simon Petrus verskyn!” “Ons het net sulke goeie nuus vir julle,” sê die twee. Hulle vertel toe hoe Jesus saam met hulle kom stap het en hoe hulle Hom herken het toe Hy die brood daar in hulle huis gebreek het. Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.” Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?” “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet. Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword.” Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê. “Sien julle nou dat die Bybel sê dat die Messias moes kom ly en dat Hy op die derde dag weer uit die dood sou opstaan? Wel, van nou af gaan julle hierdie goeie nuus wêreldwyd oorvertel; van hier in Jerusalem af tot aan die uithoeke van die wêreld. Julle moet vir ander mense sê om hulle sondes te laat staan en dat hulle hulle tot God moet bekeer. Sê vir hulle dat al hulle sondes vergewe word wanneer hulle in My glo. Julle het alles wat met My gebeur het self aanskou. Gaan vertel dit aan ander mense. “My Vader het ook nog ’n baie groot Geskenk vir julle. Ek gaan hierdie Geskenk binnekort na julle toe stuur. Wag nog net so ’n klein rukkie hier in Jerusalem. Een van die dae gaan julle met baie groot krag direk uit die hemel toegerus word.” ’n Rukkie later het Jesus sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy na die hemel toe vertrek. Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggegaan het. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap. Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het. In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegaan om God te dien en te eer. Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God. Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak. Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop. Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie. Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val. Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak. Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie. Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê. Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is. Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.” Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie. God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is. Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?” Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!” “Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?” “Nee.” Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?” “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’” Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?” “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.” Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het. Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek. Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop. Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.” Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!” Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar. Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!” Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.) “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas. Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek. Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.) Die volgende dag was Jesus van plan om na Galilea toe te gaan. Hy loop toe vir Filippus raak. “Kom saam met My,” nooi Jesus hom uit. Filippus het uit Betsaida gekom waar Andreas en Petrus ook gebly het. Die nuus oor Jesus het vinnig versprei. Filippus het vir Natanael gekry en hom weer vertel: “Ons het die Een gekry oor wie Moses geskryf het. Jy weet mos, dit is die Een oor wie die profete ook so geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef wat in Nasaret bly.” “Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou. Terwyl Natanael nog in Jesus se rigting op pad was, het Jesus al gesê: “Kyk, hier is ’n ware, egte Israeliet. Hy is eerlik en opreg. Hy het glad niks om weg te steek nie.” “Van waar af ken U my dan?” vra Natanael. “Jy was nog daar onder ’n vyeboom toe het Ek jou al raakgesien, nog voordat Filippus met jou gepraat het.” “Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!” het dit oor Natanael se lippe gerol. Jesus sê toe vir hom: “Jy glo en vertrou My omdat Ek maar net vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het. Eintlik het jy nog niks gesien nie! Wag maar, daar kom nog baie groter ervarings as dit. “Luister nou mooi na wat Ek sê: Julle sal God se woonplek in die hemel sien oopgaan. Voor julle oë sal die engele van God van die Seun van die mens af opgaan daarheen en dan terugkom na Hom toe.” [1-2] Die volgende dag is Jesus en sy volgelinge na ’n troue toe. Die troue was in Kana. Kana lê in die provinsie Galilea. Jesus se ma was ook daar. *** Die wyn raak toe op. Jesus se ma gaan sê dit toe vir Hom. Jesus antwoord haar: “Wat het dit eintlik met My te doen? Dit is nie my groot oomblik nie, nog nie.” Sy ma vra die helpers toe: “Doen asseblief wat Hy vir julle sê.” Daar eenkant het ses klipkanne gestaan. Elkeen het sowat 90 liter water gehou. Die Jode het die water gebruik om hulleself godsdienstig te reinig. Jesus sê toe vir die helpers: “Maak daardie kanne vol water.” Die helpers het die kanne tot heel bo vol gemaak. “Skep nou ’n beker daarvan en vat dit vir die seremoniemeester.” Die helpers maak toe soos Jesus gevra het. Daardie water het wyn geword en die helpers het dit besef. Die seremoniemeester het egter niks daarvan geweet nie. Toe die seremoniemeester daarvan proe, roep hy die bruidegom: “Vir wat het jy die goeie wyn tot nou toe gebêre? Jy weet mos ons gee eers die goeie wyn vir die mense en daarna die swakker wyn.” Dit was die eerste teken wat Jesus gedoen het, daar in Kana in Galilea. So het sy grootheid en belangrikheid duidelik geword. En sy dissipels het in Hom geglo. Daarna het Jesus saam met sy ma, broers en volgelinge ’n rukkie in Kapernaum gaan bly. Jesus is toe Jerusalem toe vir die paasfees wat net om die draai was. Die Jode het hierdie fees elke lente gevier. Daar aangekom, is Jesus reguit tempel toe. Op die plein wat aan die tempelgebou grens, was dit die ene bedrywigheid. Die plek was vol handelaars wat beeste, skape en duiwe aan die mense verkoop het om as offers te gebruik. Oral het tafels gestaan waar ’n mens vreemde geld kon omruil vir geld wat vir tempelbelasting gebruik kon word. Jesus maak toe ’n sweep uit toue en jaag die hele spul uit die tempelplein uit, skape en beeste inkluis. Ook die mense wat met die geld gewerk het, het deurgeloop. Jesus het hulle tafels omgegooi en hulle geld die wêreld vol gestrooi. Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed weg! Hoe durf julle my Vader se huis in ’n mark verander!” Skielik onthou sy volgelinge wat daar geskrywe staan: “Liefde en ywer vir u huis brand in my soos ’n verterende vuur.” Die Jode kap toe terug: “Wie of wat gee jou die reg om hierdie dinge aan te vang? Kan jy enigiets buitengewoons doen om te bewys dat God jou die reg gee om dit te doen?” “Wel,” sê Jesus vir hulle, “breek die laaste klip van hierdie tempel af en in net drie dae sal Ek dit weer opbou.” “Wat! Dit het 46 jaar se harde werk gekos om hierdie tempel te bou! En jy wil dit sommer in drie dae doen!” sê die Jode dadelik. Jesus het egter met “hierdie tempel” na sy eie liggaam verwys. Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy volgelinge hierdie woorde van Hom baie goed onthou. Hulle het besef dat wat Hy gesê het, waar is, soos hulle ook geglo het wat in die Skrif geskryf staan. Jesus was vir die paasfees in Jerusalem. Baie mense het daar die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het. Hulle het besef dat hierdie dinge tekens is van iets baie groters. Daarom het hulle in Jesus begin glo. [24-25] Jesus het egter geweet hoe onbetroubaar mense is. Niemand hoef dit vir Hom te vertel het nie. Daarom het Hy hulle nie sommer vertrou nie. Een nag het Nikodemus Jesus kom opsoek. Hy was ’n belangrike leier in die Joodse gemeenskap en ’n lid van die party van die Fariseërs. Hy knoop toe met Jesus ’n gesprek aan: “Meneer, ons is oortuig daarvan dat God u gebruik om ander mense te leer. Weet u waarom sê ek so? As God iemand nie bystaan nie, sal hy eenvoudig nie die dinge kan doen wat u regkry nie.” Jesus antwoord hom toe: “Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangriks sê. As iemand nie nog ’n keer gebore word nie, sal hy sowaar nie deel word van die ryk waar God Koning is nie.” “Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is, nog ’n keer gebore te word?” vra Nikodemus Hom. “’n Mens kan mos nie ’n tweede maal in jou ma terugklim om weer ’n keer gebore te word nie.” “Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie. Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe. “Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur. Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore word, ervaar dit ook so.” “Hoe op aarde kan dit wees?” vra Nikodemus. Jesus gaan toe voort: “Hoe is dit moontlik dat jy nie hierdie dinge verstaan nie? Jy is dan self ’n onderwyser wat die Israeliete oor godsdienstige dinge touwys moet maak.” “Luister baie mooi. Ons praat nie oor dinge wat vir ons vreemd of onbekend is of waarvan ons niks weet nie. Nee, wanneer ons nou met soveel sekerheid hieroor praat, is dit omdat ons dit self gesien het. Nogtans aanvaar julle nie wat Ek vir julle sê nie. Nou ja, as julle nie wil luister wanneer Ek praat oor dinge wat hier onder ons gebeur nie, hoe sal julle My dan nog glo wanneer Ek vir julle van die dieper geestelike dinge vertel? “Immers, daar is niemand wat al opgevaar het die hemel in nie, behalwe Een. Dit is juis Hy wat uit die hemel afgekom het: die Seun van die mens. Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ’n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ’n kruis opgelig word, sodat elkeen wat Hom gelowig aanvaar en vertrou, vir ewig en altyd kan leef. “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef. God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom. Dit is soos ’n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom ‘ja’ sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeelswoorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: ‘Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!’ “Hoe die dinge in die hofsaak werk, kan so verduidelik word: Jesus het as die Goddelike Lig in hierdie wêreld kom skyn. Die mense het egter meer daarvan gehou om in die donker te leef as in die lig. En daar was ’n goeie rede voor: hulle dade en optrede was net ’n onheilige en slegte gekonkel. Daarom doen hulle die dinge in die donker, want hulle is bang dat almal gaan sien hoe sleg hulle dade regtig is. Daarom hou mense wat sulke slegte dinge doen, niks van die lig nie en hardloop daarvoor weg. As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.” Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop. Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word. (Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.) Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak. Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.” “Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee. Julle weet mos ek het gesê ek is nie die Christus nie. Ek is maar net soos ’n boodskapper voor Hom uitgestuur. “Laat ek vir julle ’n voorbeeld gee: die bruid is net bedoel vir die bruidegom en oor húlle gaan die troue. Die vriend van die bruidegom, die strooijonker, help maar net. As hy die bruidegom self hoor praat, maak dit hom baie bly. So is dit tussen my en Jesus ook. Daarom ken my blydskap nou nie einde nie. Hy moet al hoe meer in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees!” “Jesus wat van bo af kom, staan kop en skouers bo almal uit. Iemand wat sommer as ’n mens hier op aarde gebore is, bly maar aards. Hy kan ook maar net oor aardse dinge praat. Sulke mense kan nie naastenby vergelyk word met die Een wat van bo uit die hemel kom nie. Hy is in ’n klas van sy eie. Hy praat met sekerheid oor wat Hy in die hemel gesien en gehoor het. Tog steur niemand hulle aan dit wat Hy met soveel oortuiging sê nie. “Wie egter luister na wat Hy sê, bevestig daarmee dat God waar is en dat die waarheid van God af kom. God het Hom gestuur om sy boodskap vir ons te bring. Die Seun kan dit doen, want God het die Gees aan Hom gegee sonder voorwaarde of beperking. Die Vader het sy Seun lief en het alles aan Hom gegee. Daarom het die Seun beheer oor alles. “Iemand wat dus deur geloof ’n vriend van die Seun word, sal vir ewig en altyd sy vriend bly. “Maar iemand wat die Seun die rug toekeer en nie na Hom wil luister nie, sal nooit so ’n vriendskap ken nie. Hy sal wel iets anders leer ken: die woede en straf van God!” Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Hy gewild begin raak het en dat Hy meer mense doop as Johannes. Daarom is Hy weer van Judea af terug Galilea toe. (Eintlik het Jesus nie self gedoop nie. Sy volgelinge het dit namens Hom gedoen.) [3-4] ’n Mens kan deur Samaria na Galilea toe gaan. *** Op pad het Jesus besluit om by Sigar in Samaria te gaan rus. Sigar het naby die stuk grond gelê wat Jakob destyds aan sy seun Josef gegee het. Dit was juis ook die plek waar ’n put oor die fontein van Jakob gebou is. Jesus het sommer by die put gaan uitspan, moeg van die lang pad. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar toe: “Gee My asseblief ’n bietjie water om te drink.” (Sy dissipels was toe reeds dorp toe om kos te gaan koop.) “Verskoon my,” sê sy, “maar waarom vra jy my water om te drink? Is jy nie ’n Joodse man en ek ’n Samaritaanse vrou nie?” (Sy het dit gevra omdat die Jode normaalweg niks met die Samaritane te doen wou hê nie.) “As jy geweet het wat God vir mense wil gee en besef het wie vir jou water vra, sou jy nie so ’n vraag gevra het nie. Jy sou eerder vir Hom water gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het, het Jesus gesê.” “Meneer, hierdie put is diep en jy het nie eens ’n emmer en tou nie. Waar dink jy gaan jy daardie vars water vandaan kry?” vra sy. “Jy is tog sekerlik nie beter as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons nagelaat het nie. Hy self het water uit hierdie put gedrink, soos sy kinders en diere ook.” “Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie weer dors word,” antwoord Jesus. “Wie egter van die water drink wat Ek hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal maak dat hy vir ewig sal lewe.” “Meneer, gee my asseblief van daardie water,” vra sy dadelik. “Dink net, ek sal dan nooit weer dors word nie en ook nooit weer die moeite hoef te doen om hier te kom water haal nie.” Hy vra haar toe: “Gaan roep gou jou man en kom hier.” “Ek het nie ’n man nie,” sê sy. “Dit is ’n eerlike antwoord,” sê Jesus. “Jy was voorheen al vyf maal getroud. Boonop is jy nie eens getroud met die man met wie jy nou saambly nie. Ja, jy het die waarheid gepraat.” “Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid. Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy. “Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie. Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie. Tye verander. Hulle sal nou op enige plek met God kan praat, net solank hulle dit opreg met die hulp van die Heilige Gees doen. Die Vader self het besluit dat dit so moet wees. Immers, God is Gees. Daarom is dit verstaanbaar en nodig dat die Heilige Gees die gelowiges moet help om Hom opreg te dien soos Hy daarvan hou.” Die vrou sê toe weer: “Ek weet dat die Messias kom. Die Grieke praat mos van Hom as ‘Christus’. Nou ja, wanneer Hy kom, sal Hy vir ons van al die nuwe dinge kom vertel.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die Redder, die Messias, wat nou met jou praat.” Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe. By die put het die dissipels intussen vir Hom gesê: “Rabbi, U moet iets eet.” Sy antwoord was: “Ek het my eie kos waarvan julle nie eens weet nie.” Die dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk intussen vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het. “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.” Baie Samaritane uit daardie dorp het in Jesus geglo. Die vrou het mos aan hulle vertel dat Jesus alles van haar geweet het. Dit het hulle oortuig. Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels. Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister. “Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.” Twee dae later is Jesus Galilea toe. Jesus het goed geweet en het ook vir die mense gesê dat ’n profeet nie gerespekteer word deur die mense onder wie hy grootgeword het nie. Toe Hy egter in Galilea aankom, is Hy met oop arms ontvang. Dit was ook maar net omdat die mense daar al die dinge gesien het wat Jesus by die feestelikhede in Jerusalem gedoen het. Hulle self was ook Jerusalem toe vir die paasfees. Jesus is toe Kana toe. Dit is dieselfde dorpie waar Hy die water in wyn laat verander het. Daar was ’n hoë staatsamptenaar wat in Kapernaum vir die koning gewerk het. Sy seun het intussen baie siek geword. Die nuus het by hom uitgekom dat Jesus terug is uit Judea. Hy is dadelik na Jesus toe en het Hom gevra om asseblief saam met hom huis toe te kom. Sy seun was besig om dood te gaan en hy wou hê Jesus moet hom gesond maak. Jesus sê toe: “As dit nie vir al die wonderlike dinge was wat Ek gedoen het nie, sou julle ook maar nie geglo het nie.” Die man hou toe egter vol: “Here, kom tog asseblief gou voordat my kind doodgaan.” Jesus sê toe: “Gaan maar huis toe. Jou seun lewe.” Die man het Jesus vertrou en is terug huis toe. Hy was nog op pad toe sy werkers al met die goeie nuus aankom: “U seun leef!” Hy vra hulle toe uit oor presies wanneer sy seun beter begin word het. “Omtrent so eenuur gistermiddag het sy koors begin breek,” sê hulle. Toe hy mooi terugdink, besef die pa dat dit juis die tyd was toe hy en Jesus gesels het. Jesus het toe mos al vir hom gesê dat sy seun lewe. Hy, saam met almal wat in sy huis bly, het toe in Jesus geglo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Galilea gedoen het nadat Hy teruggekom het uit Judea. ’n Rukkie later is Jesus weer Jerusalem toe vir nog ’n Joodse fees. [2-3] Naby die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad wat in Hebreeus Betesda genoem is. Dit was die bymekaarkomplek vir mense met die een of ander siekte, soos blindes, kreupeles en mense met ander siektes. By die bad was daar pilare met ’n dak op. Die pilare het vyf gange gevorm. Daar het die siekes rondgesit of -gelê. *** *** Onder hulle was daar ’n man wat al 38 jaar lank siek was. Jesus het hom daar sien lê. Hy het geweet dat die man al lank siek was en vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?” “Meneer,” antwoord die siek man, “ek sou graag wou, maar ek het niemand om my in die bad te sit as die water begin roer nie. Terwyl ek my bes probeer om eerste daar te kom, gaan iemand anders voor my in.” “Staan op!” sê Jesus. “Vat jou slaapmat en stap hier weg.” Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat opgetel en weggestap. Dit het op die sabbat gebeur. “Dit is die sabbat vandag,” gaan die Jode die man teë. “Jy mag mos nie vandag jou slaapmat dra nie.” “Dis nie ek nie! Dis die man wat my gesond gemaak het. Dit is Hy wat vir my gesê het: ‘Tel jou goed op en stap hier weg,’” maak die man verskoning. Hulle vra hom toe: “Wie het dit gesê?” Die man was nie seker nie, want Jesus was nie meer daar nie. Hy is stilletjies daar weg omdat so baie mense daar saamgedrom het. Later loop Jesus die man weer in die tempel raak. “Wel, jy is nou gesond. Bly nou van die sonde af weg sodat iets slegters jou nie dalk tref nie.” Die man is toe reguit na die Jode toe om vir hulle te vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.” Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie. Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen. Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig. “Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee. Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe. Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het. Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar kom ’n dag wanneer al die mense wat reeds begrawe is, sy stem sal hoor. Hulle sal uit die grafte uitkom. Die mense wat voorbeeldig en goed gelewe het, sal opstaan om vir ewig saam met God te leef. Aan die ander kant sal daardie mense wat hulle met verkeerde dinge besig gehou het, opstaan om te hoor dat hulle vir ewig en altyd verdoem is.” “Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie. Nee, die besluite wat Ek neem, kom van God af; Hy het My gestuur om te kom sê presies wat Hy wil hê. “In ’n hof sou mense miskien kon sê dat hulle My nie sal glo as net Ek alleen al hierdie dinge sê nie. Ek is egter nie die enigste getuie in hierdie saak nie. Daar is ook ander en hulle praat die heilige waarheid. “Julle onthou mos nog die mense wat julle na Johannes die Doper toe gestuur het? Alles wat hy vir hulle oor My gesê het, is waar. Glo dit maar. “Ek het egter nie mense se getuienis nodig nie. Ek hoef Johannes nie eens as getuie te roep nie, want Ek het beter getuies as hy. Ek herinner julle egter net aan wat hy gesê het sodat dit julle kan help op julle pad na redding. Johannes kan met ’n lamp vergelyk word. Hy het gebrand en sy lig gegee. ’n Rukkie lank was dit vir julle lekker om in daardie lig te leef. “Ek het egter getuies wat baie belangriker is as Johannes. My eerste getuie is die wonderlike dinge wat Ek doen. My Vader het My spesiale dinge gegee om hier op aarde te kom doen. Dit is dus ’n goeie bewys daarvan dat die Vader My gestuur het. Die tweede getuie is die Vader. Hy het My gestuur. Julle het Hom nog nooit direk hoor praat nie. Net so min het julle Hom al ooit gesien. Julle weet ook nie wat Hy regtig sê nie en glo dit ook nie wanneer julle dit hoor nie. Dit alles sien ’n mens daaraan dat julle nie glo in die Een vir wie die Vader gestuur het nie. My derde getuie is die Skrif. Julle is oortuig dat julle in die Skrif die pad na die ewige lewe kan ontdek. Daarom lees en bestudeer julle die Skrif so ywerig. Maar julle kyk een ding mis. Hierdie selfde Skrif praat met oortuiging van My. Tog wil julle nie na My toe kom sodat Ek vir julle die ewige lewe kan gee nie. Ek gee nie om wat mense van My dink nie. Ek ken julle mos! Ek weet dat julle God nie regtig uit die hart uit liefhet nie. “Ek het gekom en is hier namens my Vader. Maar julle wil dit nie aanvaar nie. Julle draai julle rug vir My. Julle is egter gou om iemand anders te aanvaar wat geen gesag het nie en sommer op sy eie hier aankom. Dit laat my wonder: Hoe gaan julle ooit glo? Julle is heeltemal op die verkeerde pad. Julle wil so graag belangrik wees in mekaar se oë dat julle glad nie omgee wie of wat vir die enigste God belangrik is nie. “Julle tyd sal kom. Dan sal julle as beskuldigdes in die groot hofsaal voor God moet staan. Dit gaan nie eens vir My nodig wees om te sê wat julle alles verkeerd gedoen het nie. Moses gaan dit doen; ja, daardie einste Moses op wie julle al julle hoop so vestig. Julle wil My nie glo nie? Wel, Ek het nuus vir julle. Baie van die dinge wat Moses geskryf het, het hy oor My geskryf. Daarom, as julle verstaan en aanvaar wat Moses geskryf het, moet julle My ook verstaan en aanvaar. Eintlik is daar nie salf aan julle te smeer nie. As julle dan nie eens wil aanvaar wat Moses self geskryf het nie, watter hoop het Ek dat julle gaan luister na wat Ek vir julle te sê het?” Daarna het Jesus die Meer van Galilea (ook bekend as die Meer van Tiberias) oorgesteek. Die mense het Hom nie gelos nie en het om Hom saamgedrom. Hulle het die wonderlike tekens gesien wat Hy gedoen het, soos die siekes wat Hy gesond gemaak het. Hulle het agter Jesus aan teen die berg op geloop, tot waar Hy met sy volgelinge gaan sit het. Die paasfees was naby. Dit was ’n belangrike fees vir die Jode. Jesus het na die groot klomp mense gekyk wat saam met Hom gekom het. Party was nog besig om teen die berg op te stap na Hom toe. Hy vra toe vir Filippus: “Is daar ’n winkel hier naby waar ons brood kan koop vir al hierdie mense?” Hy het dit vir Filippus gevra om te kyk wat Filippus sou sê. Hy het egter al klaar geweet hoe Hy die probleem sou oplos. “Al werk ek agt maande aanmekaar, sal ek nie eens genoeg geld hê om vir al hierdie mense iets te gee om te eet nie,” sê Filippus. Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: “Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.” Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.” Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin. Die mense het dit gesit en bekyk. Hulle het besef dat hulle hier ’n teken gesien het van hoe spesiaal Jesus regtig is. Hulle sê toe vir mekaar: “Hy is definitief daardie Boodskapper van God, julle weet mos, daardie spesiale Een wat na die wêreld toe moes kom.” Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen. Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op. Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei. Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik. Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.” Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie. Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?” Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete! Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.” Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?” Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.” “Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.” Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!” Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak. Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het. Laat Ek julle vertel wat my Vader se plan is: Hy wil nie hê dat een enkele mens wat aan Hom en My behoort, iets oorkom nie. Ek moet hulle almal op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan. Sy wens is dat elkeen wat raaksien wie die Seun is en Hom met sy hele hart aanvaar, die lewe sal kry wat nooit sal ophou nie. Ek sal daardie persoon op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan.” Die Jode het toe onderlangs begin mompel omdat Jesus gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom het. “Is Josef nie sy pa nie? Ja-nee, ons ken sy pa en ma goed. Ons weet mos waar hy vandaan kom. Hoe kan hy nou hier vir ons kom staan en vertel dat hy uit die hemel gekom het?” “Vir wat staan julle so onder mekaar en mompel?” vra Jesus toe. “Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie. Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. Want Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.” Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’. Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.” Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?” Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg? Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom? Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê. Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.) Teen hierdie agtergrond sê Hy toe: “Nou verstaan julle miskien ook waarom Ek sê dat niemand ’n Christen kan word as die Vader dit nie vir hom moontlik maak nie.” Na dié gesprek het baie van Jesus se volgelinge nie meer in Hom belanggestel nie. Hulle het omgedraai en toe op die ou manier met hulle lewe aangegaan. Jesus vra toe vir sy twaalf getrouste volgelinge: “En julle? Het julle nie ook lus om alles maar op te gee en ook weg te gaan nie?” Simon Petrus antwoord: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie! U vertel dan vir ons hoe om die ewige lewe te kry. Ons weet tog dat God U spesiaal uitgesonder het om dit te doen. Daarvan is ons doodseker.” Jesus sê toe: “Jy praat so. Een van julle wat hier staan, is ’n duiwel, al het Ek hom self gevra om my volgeling te word.” (Jesus het van Judas, uit die familie van Simon Iskariot, gepraat. Hy was een van Jesus se twaalf intiemste volgelinge. Hy sou Jesus egter later verraderlik aan sy vyande uitlewer.) Jesus is toe na Galilea toe. Hy het die plek platgestap. Uit Judea het Hy egter vir eers weggebly, want die Jode daar wou Hom mos doodmaak. Dit was Oktober en die fees van die tente was om die draai. Die Jode het elke jaar hierdie fees gehou. Dit het hulle herinner aan die tente waarin hulle voorouers moes bly toe hulle uit Egipte weg is. Terselfdertyd het hulle ook sommer vir die Here dankie gesê vir die goeie oeste. Dit was nou regtig ’n fees waarin die Jode se vrolikheid geen perke geken het nie. ’n Hele sewe dae lank het hulle fees gehou. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Luister, vir wat sit jy hier? Gaan Judea toe en wys vir jou volgelinge wat jy kan doen. Wat van ’n paar wonders daar? As jy aandag wil trek, help dit nie jy kruip hier weg nie. As jy hierdie dinge dan nou moet doen, gaan doen dit ten minste daar waar al die mense jou kan sien.” Sy broers het so met Hom gepraat, want hulle kon nog nie aanvaar dat Hy werklik die Seun van God is nie. Jesus antwoord toe: “Moenie vir My sê wat Ek moet doen nie. Ek weet wanneer die tyd vir My ryp is om dinge te doen. Doen julle maar wat julle wil en los My uit. Julle hoef nie bekommerd te wees oor wanneer sekere dinge met julle gaan gebeur nie. Sondige mense word mos nie vir julle kwaad soos hulle vir My kwaad word nie. Ek sê mos reguit vir hulle dat hulle op die duiwel se pad is en daarvan hou hulle niks. Gaan julle maar. Gaan geniet julle fees. Ek bly net hier. Wanneer die tyd ryp is, sal Ek doen wat Ek moet doen.” Jesus het net daar in Galilea gebly. Jesus se broers is toe weg fees toe. So stil-stil is Jesus op sy eie ook soontoe, want Hy wou nie aandag trek nie. Toe die fees begin, het die Jode begin rondvra: “Waar is daardie vent?” Oral onder die mense is daar oor Jesus gepraat. “Ag nee wat,” het party gesê. “Hy is sommer ’n kansvatter!” “Hoe kan julle so sê?” het ander teruggekap. “Hy is ’n goeie en eerlike mens.” Niemand het dit egter gewaag om hierdie dinge baie hard te sê nie. Hulle was te bang vir die Joodse leiers. Die fees was omtrent al halfpad toe Jesus by die tempel opdaag. Daar het Hy met mense oor godsdiens en God begin praat. Die Jode het nie mooi geweet wat om daarvan te dink nie. “Hierdie man het tog nêrens gestudeer nie,” het hulle vir mekaar gesê. “Hoe is dit moontlik dat hy so baie weet?” Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen. Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom. Iemand wat sommer net ’n klomp idees uitdink en rondvertel, doen dit mos sodat mense kan sê: ‘O, kyk hoe slim is hy,’ nie waar nie? Dit doen Ek nie. Nee, Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is. Kyk na Hom en nie na My nie. Dit moet mos al genoeg wees om julle van my goeie bedoelings te oortuig, asook daarvan dat Ek die waarheid praat. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? Dit is mos die wil van God. Maar julle steur julle nie daaraan nie. Julle breek die wet elke dag. Nou wil julle My doodmaak omdat Ek kamma die wet gebreek het toe Ek op die sabbat iemand gesond gemaak het. Verbeel jou!” Dit het die mense omgekrap. “Jy is van jou sinne beroof, man!” snou hulle Hom toe. “Wie wil jou nou skielik doodmaak?” Jesus het Hom nie laat afskrik nie. “Ek het een buitengewone ding ’n ruk gelede op die sabbat gedoen. En kyk na julle, julle is nog steeds hier aan die wonder of dit nou reg was of nie. Ek wil julle graag help om dit beter te verstaan. Moses het gesê dat julle julle seuntjies ’n sekere aantal dae na geboorte moet besny. (Eintlik het Moses dit nie begin nie, maar sy voorouers.) Omdat dit Moses is wat dit gesê het, doen julle dit, al moet julle dit ook op die sabbat doen. Nou wil Ek julle ’n vraag vra: julle sê dit is reg om op die sabbat iemand te besny. Moses het mos gesê julle moet dit doen. Sekere dinge ís dan mos belangriker as die sabbat. As dit so is, waarom raak julle dan so opgewonde as Ek nie net ’n deel van ’n mens nie, maar die hele mens op die sabbat gesond maak? Dink eers goed na voordat julle sommer sê iemand is verkeerd. Dan sal julle oordeel miskien meer in die kol wees.” Vir party van die mense in Jerusalem was hierdie gesprek nogal snaaks. “Is dit nie dieselfde man van wie die leiers so graag ontslae wou raak nie? Kyk nou net, hier staan hy tussen hulle en praat. En wat doen die leiers? Hulle staan soos lammetjies daar en maak nie ’n geluid nie. Ons wonder maar net: Besef hulle nie dalk dat hy regtig die Christus is nie? “Dit sal snaaks wees, want ons weet mos waar hierdie man grootgeword het en wie sy familie is. Met die Christus sal dit mos anders wees. Niemand sal weet waar Hy grootgeword of wie Hom grootgemaak het nie.” Jesus sê toe hard, sodat almal dit kan hoor: “Julle praat maklik, asof julle so seker is wie Ek is en waar Ek vandaan kom. Eintlik het julle geen idee nie! Ek het nie bloot uit My eie hier aangestap gekom nie. Die ware God self het My hierheen gestuur! Hom ken julle nie, maar Ek was by Hom en kom van Hom af. Daarom ken Ek Hom. Dit is juis Hy wat My na julle toe gestuur het.” Nou was die Jode eers vasberade om Jesus agter tralies te sien. Niemand het egter ’n vinger verroer nie. Volgens God se plan was die tyd daarvoor nog nie ryp nie. Nie almal wou egter vir Jesus in die tronk gooi nie. Daar was baie mense wat in Hom geglo het. Vas oortuig het hulle gesê: “Kyk net watter wonderlike dinge het Hy al gedoen. Wat meer wil julle hê voordat julle oortuig sal wees dat Hy die Messias is?” Al het die mense dit probeer stil hou, het die Fariseërs dit tog te hore gekom. Dit het hulle laat besluit om nou iets aan die saak te doen. Hulle het die invloedryke priesters daarvan gaan vertel en toe die polisie gestuur om Jesus te gaan vang. Jesus het gesien wat aangaan. Hy sê toe: “Ek sal nie meer lank hier by julle wees nie. Dan gaan Ek weer terug na my Vader toe wat My gestuur het. Wanneer Ek teruggaan, sal dit ook nie help dat julle My soek nie. Julle sal My nie kry nie, al soek julle hoe hard. En weet julle hoekom nie? Waar Ek dan sal wees, sal julle nie kan kom nie.” Die Jode bespiegel toe onder mekaar hieroor: “Waarheen sou hy kon gaan dat ons hom nie sal kan kry nie? Is hy tog nie van plan om land uit te vlug en vir die klomp ongelowiges daar te gaan preek nie?” het hulle gewonder. Ja-nee, Jesus se woorde dat Hy na ’n plek toe gaan waar hulle Hom nie sal kan uitsnuffel nie, het die Jode aan die raai gehou. Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.” (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.) Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!” “Julle mag so dink, maar ons dink Hy is die Redder self,” het ander hulle opinie gelug. Daar was ook ’n paar beterweters: “Ja, maar Hy kom uit Galilea. Ons almal weet tog dat die Redder nie uit Galilea sal kom nie. Die Bybel self sê vir ons dat die Redder ’n agteragterkleinseun van Dawid sal wees. Dawid kom mos uit Betlehem en dit is baie ver van Galilea af! Hoe verklaar julle dit?” So het die mense met mekaar gestaan en stry. Daar was ook weer sterk sprake dat party Jesus in die tronk wou gooi, maar niemand het die moed gehad om dit regtig te doen nie. Die polisie het Jesus net daar gelos. Hulle gaan rapporteer toe by die Fariseërs en die priesters, wat dadelik wou weet: “Waar’s hy?” Die polisie sê toe: “Het julle hom miskien al gehoor praat? Ons het nog nooit so iets gehoor nie; dit was uit ’n ander wêreld!” Die Fariseërs vlieg hulle toe in: “Is julle ook nou heeltemal deurmekaar? Weet julle ook nou nie meer wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie? Maak oop julle oë! Sien julle miskien een enkele Joodse leier of Fariseër wat dink hierdie man praat die waarheid? Nou toe! Al mense wat Hy kan beïndruk, is net die dom klomp daar buite. G’n wonder nie, want hulle weet niks van God se wil af nie.” Nikodemus (wat daardie een aand met Jesus kom praat het) was ook ’n Fariseër. Hy sê toe: “Nie so haastig nie. Ons wet sê mos dat iemand eers skuldig is as hy skuldig bevind word. Laat ons die saak eers verder ondersoek.” “Ja-nee, so ’n opmerking kan ’n mens ook net verwag van iemand wat uit Galilea kom,” kap die ander terug. “Gaan lees jou Bybel mooi. Dan sal jy sien dat Galilea nie ’n plek is waar profete nou juis vandaan kom nie.” Daarna is almal huis toe. Jesus is intussen Olyfberg toe, maar nie vir lank nie. Teen sonop was Hy al weer in die omgewing van die tempel. Daar het die mense om Hom saamgedrom. Oudergewoonte het Hy met hulle oor God gesels. Die Joodse geleerdes en die Fariseërs kom toe met ’n vrou daar aan. Sy is gevang toe sy seksueel ontrou was aan haar man. Hulle laat haar toe tussen die mense staan sodat almal haar kon sien. Hulle sê toe vir Jesus: “Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by ’n man geslaap het wat nie haar eie is nie. Moses se wet vertel vir ons presies wat ons met so ’n vrou moet maak: sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi. Maar sê jy nou ’n bietjie vir ons: Wat dink jy moet ons met die vrou maak?” Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop Hy sou sy mond verbypraat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep. Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle. Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets in die grond geskryf. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: “Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.” Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf. Daar staan die Joodse geleerdes toe met ’n mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos. Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om ’n klip op jou te gooi nie?” “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord. Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.” Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.” Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.” “Al praat Ek ook oor Myself, kan julle maar glo wat Ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets ’n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie baie belangriker om liewer te vra of ’n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie ’n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter. Tipies mens kyk julle net deur menslike oë. Ek sien en beoordeel dinge anders. “As Ek egter dinge oor mense sê, kan julle maar weet: alles wat Ek sê, is waar. Selfs ’n regter in ’n hof sal dit moet toegee. Daar is immers twee van ons wat die waarheid daarvan waarborg. Daar is natuurlik Ek en my Vader wat My gestuur het. Julle eie wet sê mos dat as twee mense dieselfde sê, die regter dit ernstig moet opneem. Nou ja, Ek praat wel oor Myself, maar my Vader wat My gestuur het, bevestig dat alles waar is wat Ek sê.” “Nou toe, waar’s jou pa? Wys hom vir ons!” sê hulle toe. “Julle het nie ’n benul wat julle vra nie. Julle weet nie wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. As julle geweet het wie Ek is, sou julle ook dadelik geweet het wie my Vader is,” kom dit toe van Jesus. Hierdie gesprek het plaasgevind by die plek waar mense hulle bydraes vir die tempel kom inbetaal het. Ten spyte van hulle wraakplanne het die Jode nie eens probeer om die polisie te roep om Hom te kom vang nie. God het besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie. Jesus het verder op sy stelling uitgebrei. “Soos Ek gesê het, Ek gaan weg. Al probeer julle hoe hard, sal julle nie kan kom waar Ek heen gaan nie. En weet julle hoekom nie? Omdat julle te ongehoorsaam aan God is. Daarom sal julle sonder God doodgaan.” Die Jode vra toe onder mekaar: “Hierdie praatjies dat hy kwansuis na ’n plek toe gaan waar ons nie kan kom nie, klink maar verdag. Is hy dan van plan om selfmoord te pleeg?” “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.” “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou. Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.” (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.) Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie. Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.” Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar. Jesus sê toe vir hierdie Jode wat hulle vertroue in Hom begin stel: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.” Die Jode kap toe vinnig terug: “Ons is die nageslag van Abraham. Niemand kon nog ooit ons vryheid van ons wegneem nie. Waar kom jy daaraan dat ons nou skielik vry moet word?” “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry. Natuurlik weet Ek dat julle biologies die nageslag van Abraham is. Wie weet dit nou nie? Maar tog wil julle My doodmaak. Dit sê iets van julle geestelike vader. Julle wil mos nie aanvaar wat Ek vir julle sê nie. Intussen vertel Ek julle net wat Ek by die hemelse Vader gesien het. Julle moordgedagtes bewys egter alte duidelik dat Satan julle vader is. ’n Kind luister mos na wat sy pa vir hom sê.” Die Jode sê toe weer: “Abraham is ons pa!” “Die werklike nageslag van Abraham sal beslis die voorbeeld volg wat Abraham gestel het. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie. “Maar julle tree presies op soos julle regte pa sou optree,” sê Jesus. Hulle snap toe waarop Jesus eintlik sinspeel: “Ons is g’n buite-egtelike kinders nie! Ons het net een Vader en dit is God self.” Daarop antwoord Jesus toe: “As God julle Vader was, sou julle lojaal teenoor My wees en My liefhê. Kyk, hier staan Ek voor julle: Ek kom van daardie selfde God af. En Ek het nie sommer op my eie hier aangestap gekom nie. Nee, God self het My gestuur! Laat Ek vir julle sê waarom die dinge wat Ek sê nie vir julle sin maak nie. Julle is soos dowe mense. Nie ’n woord sink by julle in nie, want julle wil nie behoorlik luister na wat Ek sê nie. En daar is ’n goeie rede voor. Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net! Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie? Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.” Daarvan het die Jode niks gehou nie. “Dit bewys net weer hoe reg ons nog altyd oor jou was. Jy is van jou sinne beroof en nog dom ook!” “Ek is allesbehalwe van my sinne beroof,” sê Jesus. “Dit is ’n kwessie van wie vir jou belangrik is. Vir My is my Vader belangrik en Ek steek dit nie weg nie. Maar al wat julle kan doen, is om My te beledig. Dit ontstel My egter nie. Dit is nie Ek wat graag in die kalklig wil staan nie. Dit is God wat wil hê dat mense moet dink Ek is belangrik. En Hy is die Een wat besluit wat reg of verkeerd is. Nou wil Ek regtig vir julle iets belangriks sê: as iemand dit wat Ek sê so ernstig opneem dat dit die enigste manier word waarop hy dink en optree, sal hy nooit, maar nooit, geestelik doodgaan nie.” Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Nou wonder ons nie meer of jy van jou sinne beroof is nie, ons weet dit! Jy raak sommer goed kwyt soos dat die een wat jou woorde ernstig opneem, nooit geestelik sal doodgaan nie. Weet jy dan nie dat Abraham gesterf het nie? En weet jy nie dat God se boodskappers van ouds almal dood is nie? Wil jy nou probeer sê dat hulle nie God se boodskap geken het nie? Wat ’n vermetelheid! Dink jy miskien jy is belangriker as ons vader Abraham of as die boodskappers van God? Hulle het gesterf, maar jy sal kamma nie sterf nie! Wie dink jy nou eintlik is jy?” “Kyk, Ek probeer nie voorgee dat Ek belangriker is as wat Ek regtig is nie. Dit sou niks help nie,” sê Jesus. “Dit is my Vader wat wil hê dat julle moet sien hoe belangrik Ek regtig is. En weet julle wie is my Vader? Dit is niemand anders as die Een wat julle julle God noem nie. Julle herken Hom natuurlik nie in wat Ek sê of doen nie, maar Ek weet dit is Hy. Ek ken Hom en Ek doen wat Hy sê. Ek moet dit vir julle sê. As Ek maak asof dit nie so is nie, is Ek ook net nog ’n leuenaar. Dit het julle vader Abraham baie opgewonde gemaak om hom net voor te stel hoe dit sou wees as Ek kom. Hy het nie daaraan getwyfel dat Ek sou kom nie en hy was bly daaroor.” Die Jode sê toe vir Hom: “Sjoe, dis darem ’n mond vol! Jy sê jy het Abraham gesien, maar jy’s nog nie eens 50 nie.” Jesus sê toe: “Luister hierna: Abraham was nog nie eens gebore nie, toe was Ek al daar.” Dit was vir die Jode die laaste strooi. Hulle het klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Voor hulle hulle egter kom kry, is Jesus daar weg, die tempel uit. In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?” “Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” “Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.” “Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord. Die mense vat die man toe reguit na die Fariseërs toe. Die probleem was dat Jesus die man op die sabbat gesond gemaak het. Die Fariseërs wou die hele storie van voor af hoor. Die man het weer alles van die modder en die bad vertel. Die Fariseërs het nie mooi geweet wat om van alles te dink nie. Party het gesê: “Ons kan nie sien hoe hierdie man enigiets met God te doen kan hê nie. Hy steur hom dan glad nie aan die reëls vir die sabbat nie.” Ander het weer sterk van hulle verskil. “Ons stem nie saam nie,” het hulle gesê. “Hoe verklaar julle al dié wonderlike dinge wat hy doen? Waar sal iemand wat niks met God te doen wil hê nie die krag vandaan kry vir dié wonders?” Hulle ondervra die man toe weer: “Sê vir ons, wat dink jy van Jesus? Jy behoort mos te weet, want dit is jou oë wat hy gesond gemaak het.” “Hy’s ’n man van God, ’n profeet,” kom die kort, maar kragtige antwoord. Die Jode was baie skepties oor die storie dat die man regtig blind was. Toe hulle egter sy ouers roep en hulle vra, kon hulle nie meer twyfel nie. “Is dié man julle seun wat volgens julle blind gebore is?” [20-21] “Ja, dit is ons seun dié. Julle kan ons maar glo, hy kon nog nooit sien nie,” antwoord sy ouers. “Hoe is dit dan dat hy nou skielik kan sien?” wou die Fariseërs weet. “Nee, nou vra julle ons vas. Ons weet nie. Ons het geen idee wie sy oë gesond gemaak het nie. Maar daar staan hy. Hoekom vra julle hom nie self nie? Hy’s mos al ’n grootmens. Hy kan darem seker vir homself praat.” *** Sy ouers was bang vir die Jode; daarom het hulle so ontwykend geantwoord. Hulle het alte goed geweet wat die Joodse leiers besluit het: enigiemand wat iets goeds oor Jesus sê of Jesus in die openbaar verdedig, sou nie meer welkom wees by die Joodse byeenkomste nie. Sulke mense sal nooit weer daar mag kom, of saam met die Jode mag kerk hou nie. Daarvoor het die man se ouers nie kans gesien nie. Om uit die moeilike situasie te kom het hulle maar gesê: “Vra hom self; hy’s oud genoeg.” ’n Tweede keer roep die Joodse leiers toe die man nader. Hulle wou hom ’n bietjie toets: “Gaan liewers op jou knieë en sê vir God dankie. Maak Hom groot. Vergeet van hierdie ander man, hierdie Jesus; hy’s sommer ’n regte sondaar!” Die man sê toe: “Wel, ek kan nie eintlik sê of hy ’n sondaar is of nie. Dis julle terrein daardie. Julle is mos die godsdienstige spesialiste. Waarin ek egter die spesialis is, is dit: ek was blind, maar nou kan ek sien!” “Verduidelik ’n bietjie weer vir ons alles van voor af. Wat het hy presies gedoen?” vra hulle die man toe weer. “Maar luister julle nie na wat ek sê nie? Ek het mos al vir julle alles vertel. Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil hom nie dalk begin volg nie, of hoe?” Daarvan het die Joodse leiers niks gehou nie. Hulle het die man begin uitskel: “Jy’s deurmekaar, man. Jy is sy volgeling. Ons is getroue volgelinge van Moses. En Moses staan ten minste aan God se kant, want God het met hom gepraat. Daarvan is ons seker! Maar hierdie man, Jesus, van hom weet ons niks. Ons weet nie eens waar hy uitgekruip het nie.” Die man sê toe: “Dit is darem baie snaaks. Julle sê julle weet kamma nie waar hy uitgekruip het nie. Intussen was dit juis hy wat my weer laat sien het. Ons almal weet tog dat God nie na mense luister wat niks met Hom te doen wil hê nie. God verhoor slegs die gebede van iemand wat Hom dien en so optree dat God met hom tevrede voel. Boonop het nie een van ons nog ooit gehoor dat iemand ’n man wat blind gebore is, weer kon laat sien nie. Jesus sou mos nie een van dié dinge kon doen as hy nie aan God se kant gestaan het nie, nie waar nie?” Die Joodse leiers was woedend. “Jou hele lewe is net een groot stuk sonde. Van God en sy dinge weet jy net mooi niks! Nou wil jy jou lyf staan en godsdiensonderwyser hou by ons. Watter vermetelheid!” Hulle het hom verbied om weer sy voete by enige van hulle byeenkomste te sit. Hy was nie meer by hulle as Jode welkom nie. Die nuus dat die Joodse leiers die man weggejaag het, het by Jesus uitgekom. Jesus het hom toe gaan soek en toe Hy hom kry, vra Jesus hom reguit: “Wil jy graag ’n volgeling en vriend van die Seun van God wees?” Dadelik antwoord die man: “Wys asseblief vir my waar Hy is. Ek wil graag sy volgeling wees.” “Hy staan hier reg voor jou. Jy is besig om met Hom te gesels,” sê Jesus. “Here, ek wil graag u volgeling wees, asseblief,” sê die man. Hy sak toe op sy knieë neer en maak Jesus se Naam groot. Jesus sê toe: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom sodat die mense presies kan weet waar hulle met God staan. Dit beteken dat mense wat God skynbaar nog nooit geken het nie, Hom nou leer ken. Aan die ander kant beteken dit egter ook dat mense wat nog altyd gedink het dat hulle God wel ken, gaan hoor dat hulle Hom eintlik glad nie ken nie.” Van die Fariseërs wat daar naby rondgestaan het, het Jesus dit hoor sê. Hulle reageer toe dadelik: “Wat? Wil jy nou vir ons sê dat ons God eintlik nie ken nie?” Jesus het Hom nie laat afskrik nie: “As julle God regtig nie geken het nie, sou God nie julle foute teen julle gehou het nie. Maar nou laat julle almal goed verstaan dat júlle eintlik die mense is wat God baie goed ken. Wel, juis daarom sal julle die skuld moet dra vir elke verkeerde ding wat julle doen.” “Luister nou mooi. Ek gaan vir julle ’n voorbeeld gee om julle te help om beter te verstaan wat Ek wil sê. Julle weet mos hoe dit met ’n skaapboerdery gaan. As iemand skelm in die kraal probeer inkom en nie die hek gebruik nie, wil hy net kom kwaaddoen. Net ’n dief doen dit! Die herder sal die hek gebruik om in die kraal in te gaan. “Die wag by die hek sal dit dadelik vir hom oopmaak. In die kraal sal hy sy skape bymekaarmaak. Hy sal hulle op hulle name roep en hulle sal kom. Dan sal hy hulle uit die kraal lei. “Hy sal voor hulle uitstap weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem. Hulle sal egter nie agter vreemdelinge aanloop nie. Hulle sal eerder weghardloop, want hulle ken nie die vreemdeling se stem nie.” Hoewel Jesus hierdie eenvoudige voorbeeld gebruik het, het die Joodse leiers nog steeds nie gesnap wat Hy bedoel nie. “Laat Ek dit nog eenvoudiger stel. Julle kan My met die hek van die skaapkraal vergelyk. Sê My, wat is die enigste regte manier om in die kraal in te kom? Natuurlik deur die hek. “En die enigste regte manier om na God toe te kom? Natuurlik deur My! “Al die ander wat voor My gekom het, het mense op die verkeerde pad gelei. Hulle is soos diewe wat mense net wou kul. Hulle het kamma redding kom aanbied, maar God se kinders het nie na hulle geluister nie. Ek is vir julle soos ’n hek vir die skape. Ek is die hek deur wie julle na die weivelde van vrede en vriendskap met God kan stap. Deur My kry julle alles wat julle geestelik nodig het. Enigiemand wat sê dat julle op ’n ander manier by God kan uitkom, gaan julle net op ’n pynlike pad sit; die pad hel toe! Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!” “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom. “Iemand wat gehuur word om die skape op te pas, tree nie soos ’n herder op nie. Die skape behoort mos nie aan hom nie. Daarom gee hy nie regtig om vir die skape nie. As ’n leeu byvoorbeeld op die skape afstorm, sal die gehuurde man net maak dat hy so vinnig moontlik wegkom. Hy sal nie eens probeer om die skape te help nie. Die leeu sal al die tyd in die wêreld hê om onder die skape te baljaar. Wat met die skape gebeur, maak nie eintlik vir die gehuurde man saak nie. “Ek is vir almal wat My volg soos die beste herder van wie hulle kan droom. Daar is ’n sterk verhouding tussen My en elke gelowige. Ons ken mekaar. Soos my Vader My ken en Ek Hom ken, so ken Ek en elke gelowige mekaar. Omdat ons vir mekaar omgee, sal Ék liewer sterf as om toe te laat dat my volgelinge iets oorkom. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder. My Vader het My lief, en met goeie rede ook. Ek is uit vrye wil bereid om doodgemaak te word. Die doel daarmee is om te wys dat Ek self weer uit die dood kan opstaan. Niemand sal My sommer kan kom doodmaak nie. Uit my eie sal Ek hulle toelaat om dit te doen. So sal Ek bewys hoe sterk Ek is. Ek kan, as Ek wil, sterf. En Ek kan, as Ek wil, ook weer lewendig word. My Vader het gesê dat Ek dit moet kom doen. Ek moet eers toelaat dat mense My doodmaak en dan moet Ek weer lewendig word.” Hieroor het die Jode kwaai aan die stry gegaan. “Hy het die spoor heeltemal byster geraak. Vir wat mors julle nog julle tyd om na hom te luister?” het party kopskuddend gesê. “Nee, julle maak ’n groot fout,” kom dit weer van ’n ander. “Iemand wat die spoor byster geraak het, kan nie só praat nie. En buitendien, het julle al van ’n versteurde man gehoor wat iemand wat sy hele lewe blind was, kon laat sien? Toe, wat sê julle nou?” Dit was weer tyd vir die fees waarin daar teruggedink is aan die tyd toe die tempel ingewy is. Elke jaar in die winter het die Jode met ’n groot fees teruggedink aan die inwyding van hulle tempel. Jesus het juis toe deur die Salomosaal in die tempel gestap. Die Jode het om Hom saamgedrom. “Moet ons asseblief nie langer so aan die raai hou nie. Toe, sê vir ons, is jy die Een vir wie God gestuur het om ons te red? Praat reguit met ons!” Jesus sê toe: “Maar dit is wat Ek nog die hele tyd vir julle sê. Dit is julle wat nie wil glo wat julle hoor nie. En dis nie al nie. Kyk wat doen Ek alles. Dit moet seker ook iets vir julle sê. Julle moet tog daaruit kan agterkom dat God deur My werk. Maar niks wat Ek doen of sê, maak enige indruk op julle nie. En laat Ek vir julle sê hoekom nie. Ek gaan weer die voorbeeld van die herder en die skape gebruik. Julle is nie van my skape nie. My skape sal my boodskap herken. Ek ken hulle en hulle volg My. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie. “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.” Die Joodse leiers het niks daarvan gehou nie. Hulle wou Jesus sommer daar en dan met klippe doodgooi. Jesus was egter te vinnig vir hulle. “Wag ’n bietjie,” sê Hy. “Ek het baie mense gehelp en goeie dinge gedoen. My Vader wou hê Ek moes dit doen. Watter een van die dinge wat Ek gedoen het, het julle so kwaad gemaak dat julle My nou met klippe wil doodgooi? Sê My.” Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Moenie woorde in ons mond lê nie! Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?” “Sê julle Skrif nie iewers: ‘Ek, God, het gesê: Julle is gode’ nie?” vra Jesus toe. “God self noem die mense ‘gode’ wat na sy boodskap geluister het. En die Bybel jok mos nie. Nou goed, as dit so is, waarom gaan julle so te kere asof Ek God so beledig? Immers, die Vader self het My spesiaal toegerus en My na die mense in die wêreld toe gestuur. Hier het Ek net kom sê: ‘Ek is God se Seun,’ en julle sê sommer Ek beledig God. Wel, as dit wat Ek doen God ongelukkig maak, ja, nie is wat Hy graag wil hê nie, dan kan julle dit sê. Maar julle weet dit is nie so nie. As julle dink dat wat Ek sê nie waar is nie, kyk dan na wat Ek doen. Julle sal agterkom dat Ek presies doen wat God in so ’n situasie sou doen. Ons tree soos ’n onverbeterlike span saam op.” Die Joodse leiers sit toe weer aan die polisie om Jesus te vang. Voor hulle hulle egter kom kry, was Jesus al weer weg. Die mense het Hom opgespoor by die plek waar Johannes begin doop het (oos van die Jordaan). Hy is ’n rukkie lank soontoe. Die mense wou Hom net nie met rus laat nie. Hulle het gesê: “Johannes het nou wel nie wonders gedoen nie, maar alles wat hy van Jesus gesê het, kan ’n mens maar glo.” Baie mense het juis daar Christene geword. In Betanië, so drie kilometer van Jerusalem af, het Lasarus met sy twee susters, Marta en Maria, gebly. Dit was dieselfde Maria wat die duur olie oor Jesus uitgegooi en toe Jesus se voete met haar hare afgedroog het. Jesus het baie van hulle almal gehou. [3-5] Hy het ’n baie spesiale plekkie vir hulle gehad. Lasarus word toe baie siek. Sy susters het Jesus dadelik daarvan laat weet. Toe Jesus die nuus hoor, sê Hy: “Hierdie siekte beteken nie Lasarus se einde nie. Dit beteken wel dat mense sal kan sien hoe sterk God regtig is. En as mense dit sien, sal hulle sommer ook besef hoe belangrik die Seun van God is.” *** *** Daarom het Jesus besluit om eers twee dae later Betanië toe te gaan. Na ’n paar dae sê Hy vir sy volgelinge: “Kom, ons gaan na Lasarus-hulle toe.” Sy dissipels het dadelik vasgeskop, want dit was naby Jerusalem. “U kan dit nie doen nie! Het U so gou vergeet dat die Jode U nog ’n paar dae gelede met klippe wou doodgooi? Wat wil U nou weer daar gaan soek?” Jesus maak hulle toe stil. “Daar is twaalf ure lig per dag. En dit moet ’n mens gebruik. Terwyl dit lig is, kan jy sien wat jy doen. Jy sal nie oor goed loop en val of rondstrompel nie. Maar in die nag is dit heeltemal anders. As dit donker is, val jy oor alles. In die donker kan jy mos nie sien wat jy doen nie. Dus: terwyl die kans daar is, moet ’n mens doen wat gedoen moet word. Nou ja, om terug te kom na ons vriend Lasarus toe,” gaan Jesus verder, “hy slaap. Ek moet hom gaan wakker maak.” [12-13] Dit was maar net ’n ander manier om te sê dat Lasarus dood was. Sy dissipels het gedink Jesus bedoel dat Lasarus regtig slaap. “Los vir Lasarus, Here. As hy slaap, kan hy mos self wakker word,” stel hulle voor. *** Toe praat Jesus sommer reguit met hulle: “Lasarus is nie meer met ons nie, hy’s dood. Maar dit is nie slegte nuus nie. Ek is bly Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. En weet julle hoekom? As ons nou gaan, gaan dit vir julle baie beteken. Kom, laat ons loop.” Tomas, vir wie party mense “Tweeling” genoem het, sê toe vir die ander dissipels: “Kom, laat ons maar saam met Hom in die kake van die dood instap.” [17-18] Toe Jesus-hulle in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus al vier dae tevore begrawe is. *** Daar was nog ’n klomp mense by Marta en Maria se huis om hulle te troos. Toe die mense vir Marta kom sê dat Jesus op pad is, is sy dadelik uit na Hom toe. Maria het in die huis bly sit. “Here,” begin Marta sommer dadelik toe sy Hom sien. “Waar was U al die tyd? As U betyds hier was, kon U nog my broer gesond gemaak het. Dan het hy nou nog geleef. Tog het ek al die tyd aan een ding bly vashou: ek weet God sal na U luister as U Hom iets vra.” Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.” “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.” “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe. Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?” “Natuurlik, Here,” sê sy dadelik. “Ek twyfel nie een oomblik dat U die Seun van God is nie. U is die Een vir wie God spesiaal aangestel het om die mense te kom red.” Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.” Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe. Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het. Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil. Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.” Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus. “Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê: “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?” Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.” “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.” Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.” Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!” Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar. Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.” Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword. ’n Klompie het egter by die Fariseërs gaan nuus aandra. Hulle het hulle alles vertel wat Jesus gedoen het. Die leiers vra toe dat die Joodse Raad bymekaar moes kom. Die Raad was eintlik die godsdienstige parlement van die Jode. “Wat gaan ons nou doen?” vra hulle raadop. “Kyk net wat vang hierdie man alles aan. Kyk al die wonders! As ons hom toelaat om so aan te gaan, stroom al die mense netnou agter hom aan. En daarvan gaan die Romeine niks hou nie. Hulle sal weer dink dit is die een of ander opstand. Dan gaan hulle kom en alles met die grond gelykmaak - ons en al die ander mense inkluis.” Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees. So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.” Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef. En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort. Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak. Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn. Dit was ook weer tyd vir die paasfees. Die mense het van oral uit die platteland na Jerusalem gestroom. Hulle wou betyds daar kom om alles vir die feesvierings reg te kry. Jesus was die groot onderwerp van bespreking. Terwyl die mense in die tempel rondgestaan het, het hulle by mekaar probeer uitvis: “Wat dink julle? Gaan hy sy gesig hier by die fees wys?” Jesus was ook druk onder bespreking by die Fariseërs en die leiers van die priesters. Hulle het die mense gevra om op die uitkyk te wees vir Hom. As iemand Hom gewaar, moes hy hulle dadelik laat weet. Hulle sou dan die polisie stuur om Hom te gaan vang. Ses dae voor die paasfees kom Jesus weer in Betanië aan, waar Lasarus-hulle gebly het. Die mense daar het ’n spesiale ete vir Jesus gereël. Marta het hulle bedien en gesorg dat hulle genoeg het om te eet. Lasarus het saamgeëet. Maria bring toe ’n houer met duur olie wat van nardus gemaak is daar aan. Dit het soet en baie lekker geruik en is as ’n soort parfuum gebruik. Sy gooi toe sommer heelwat van die lekker olie oor Jesus se voete uit. Daarna vee sy die oortollige olie met haar hare van sy voete af. Die hele huis het lekker geruik van die heerlike olie. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.” Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp. “Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.” Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef. Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom en Jesus begin volg het. Jerusalem het uit sy nate gebars van al die mense wat fees toe gekom het. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor Jesus kom Jerusalem toe. Natuurlik is hulle dadelik daar weg om Hom langs die pad te ontmoet. Met palmtakke in die hand het hulle die hele pad geskreeu: “Ons prys U, U is baie spesiaal! U kom omdat die Here dit wil hê, U is die koning van Israel.” Jesus het op ’n jong donkie daar aangery gekom. Die Skrif sê mos: “Julle hoef nie bang te wees nie, inwoners van Sion. Kyk net; julle koning kom. Hy ry op ’n jong donkie.” Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp. Die mense wat gesien het hoe Jesus Lasarus lewendig maak, was ook deel van die groot klomp mense rondom Jesus. Hulle het natuurlik alte gretig vir almal van die wonder vertel wat by Lasarus se graf gebeur het. Dit is tog hoekom die ander mense Jesus kom soek het. Vir die Fariseërs was dit egter slegte nuus. Met die hande in die hare het hulle vir mekaar gesê: “Kyk net wat gaan nou hier aan. Dinge ruk handuit. Al wat leef en beef hardloop agter hom aan!” Onder al die Jode was daar ook ’n klompie Grieke in Jerusalem. Hulle het spesiaal vir die fees gekom. Hulle loop toe vir Filippus (die een wat van Betanië in Galilea af kom) raak en vra vir hom: “Meneer, kan ons asseblief ’n bietjie met Jesus praat?” Filippus praat toe met Andreas daaroor en hulle is toe saam na Jesus toe. Jesus sê toe vir hulle: “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle sal sien hoe belangrik Ek regtig is. Laat Ek dit vir julle so verduidelik: ’n koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit doodgaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels. ’n Selfsugtige mens wat niks vir ander voel nie omdat hy net heeltyd aan homself dink, is op die verloorpad. Hy gaan uiteindelik niks oorhou nie, nie eens sy eie lewe nie. “Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen, omdat God sal sorg dat hulle geestelik vir altyd sal leef. “Iemand wat My wil dien, moet dus bereid wees om my voorbeeld te volg. Hy moet in enige situasie presies doen wat Ek sou doen; ja, in hierdie lewe moet hy aan die werk wees op plekke waar Ek graag sou wou werk. God self sal iemand wat dít doen, prys. “Op die oomblik is my gemoed beswaard. Ek weet nie mooi wat om te bid nie. Sal Ek bid: ‘Vader, maak ’n ander plan sodat Ek nie hoef te sterf nie’? Dit kan Ek tog nie bid nie! Ek het dan juis gekom om te sterf en op te staan. Ek kan nou net een gebed bid: ‘Vader, doen wat nodig is sodat mense kan sien hoe groot en belangrik U is!’” Skielik praat Iemand uit die hemel: “Ek het al baie vir mense gewys hoe groot en belangrik Ek is. Maar Ek gaan dit weer ’n keer doen.” “Hoor die donderweer!” het party gesê. “Nee, man, dit was ’n engel wat met hom gepraat het,” kom dit weer van ander. “Julle is reg. Iemand het gepraat,” sê Jesus. “Maar Hy het eintlik nie met My gepraat nie, maar met julle. “Die tyd het gekom dat die mense gaan hoor wie reg en wie verkeerd is. Party mense dink mos die duiwel swaai die septer in die wêreld. Wel, Ek het vir julle nuus. Sy mag is gebreek. Hy het nie meer ’n sê in hierdie wêreld nie. By My gaan julle ware mag sien. Ek gaan opgelig word van die aarde af. (Hier het Hy sy kruis in gedagte gehad.) Soos ’n magneet gaan Ek dan mense na My toe aantrek, weg van die sonde van die wêreld af.” “Nou is ons deurmekaar!” sê die mense toe. “Sover ons weet, sê die Skrif dat as die Redder eers eenmaal hier is, Hy altyd hier sal bly. Nou sê jy dat die Seun aan ’n kruis gaan hang. Waarvan praat jy? Wie is hierdie ‘Seun’?” Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is. [37-38] Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie: “Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?” *** Hulle wou nie glo nie; nou kan hulle nie glo nie. Dit rym met wat Jesaja gesê het: “God het hulle soos blinde mense gemaak. Hulle het niks meer vir God omgegee nie. Ja-nee, hulle kon God nie meer raaksien nie en het nie vir Hom omgegee nie. Die kans dat hulle na God toe sal kom om sy kinders te word is nul.” Jesaja het hierdie dinge oor Christus gesê omdat hy besef het hoe belangrik Christus is. Baie mense, selfs van die Joodse leiers, was saam met Jesaja oortuig van hoe belangrik Jesus is. Stilletjies, op hulle eie, het hulle Jesus aanvaar. Hulle wou dit egter vir niemand sê nie, want hulle was bang. Hulle het koue voete gekry as hulle daaraan gedink het dat die Jode hulle uit hulle byeenkomste sou wegjaag en hulle sou verbied om weer daar te kom as hulle iets goeds van Jesus sou sê. Hulle probleem was dat hulle harder probeer het om mense te beïndruk as vir God. Jesus praat toe hard sodat almal Hom kon hoor: “Hy wat My gelowig aanvaar, aanvaar nie net vir My nie; hy aanvaar ook vir God wat My gestuur het. Hy wat werklik begryp wie Ek is, begryp ook wie My gestuur het. Ek is die Lig wat helder in hierdie donker wêreld ingeskyn het. Wie My gelowig aanvaar, sal nooit weer in die donker hoef rond te strompel nie. Ek het nie gekom om te kyk hoeveel mense Ek hel toe kan stuur nie; inteendeel. “Om die waarheid te sê, as iemand hom nie steur aan wat Ek sê nie, gaan Ek nie my energie mors om te sorg dat hy in die hel beland nie. Ek het beter dinge om te doen. Ek wil eerder my energie gebruik om mense hemel toe te vat, nie hel toe nie. As iemand sy rug vir My draai en my boodskap ignoreer, sal hy wel sy moses teëkom. Hy het mos gehoor wat Ek gesê het! By die finale oordeel sal niemand dit vir hom hoef te herhaal nie. Hy sal my woorde dan onthou, dat wie My nie aanvaar nie, hel toe gaan. Dan sal hy weet wat God oor hom besluit het. “Dit is so omdat Ek nie sommer wat Ek gesê het uit my duim gesuig het nie. My Vader het My presies vertel wat om te sê en wat nie. Toe het Hy My gestuur. Ek weet presies wat Hy wil hê: Ek moet dit vir mense moontlik maak om vir ewig saam met Hom te leef. Dit het die Vader vir My gesê en dit sê Ek vir julle.” Die paasfees was net om die draai. Jesus het besef die tyd het gekom om terug te gaan na sy Vader toe. Dit was nie vir Hom maklik nie. Hy het baie geheg geraak aan sy getroue volgelinge hier op aarde. Hy was baie lief vir hulle. Daardie aand het Jesus saam met sy groepie getrouste volgelinge geëet. Die duiwel het toe al klaar vir Judas oortuig om Jesus in die rug te steek. Dit het Jesus nie bang gemaak nie. Hy het van God af gekom en moes nou teruggaan. Boonop het Hy alles onder beheer gehad. Daarvoor het God gesorg. Jesus staan toe op en bind ’n handdoek om sy middel vas. Hy maak toe ’n bak vol water en begin sy volgelinge se voete een vir een was. Met die handdoek om sy lyf droog Hy hulle voete af. Hy kom toe by Simon Petrus. Voor Hy nog kon begin, val Petrus weg: “Here, wil U nou regtig my voete staan en was?” “Petrus, dit mag nou vir jou snaaks lyk dat Ek so iets wil doen,” sê Jesus, “maar gee ’n bietjie kans; al hierdie dinge sal wel later vir jou sin begin maak.” “Moet asseblief nie aan my voete raak nie,” vra Petrus, “nie nou nie en ook nie later nie.” “Wel,” antwoord Jesus hom, “as Ek nie jou voete was nie, beteken dit dat jy nie een van ons is nie. Dan gaan jy ook nie kry wat Ek vir jou kan gee nie.” “Here, as dit die geval is, moet dan asseblief nie by my voete stop nie. Was my hande; was my kop - sommer alles!” Jesus sê toe: “Jy het mos vanoggend gebad. Dit is nou eers genoeg om net jou voete te was; dan is jy weer heeltemal skoon. Maar nie almal van julle sal skoon word nie, al was Ek almal se voete.” Hierdie laaste sin was op Judas gemik. Jesus het mos geweet Judas gaan Hom verraai. Jesus het voortgegaan en almal se voete gewas. Daarna gaan sit Hy weer op sy plek. “Maak dit sin wat Ek vir julle gedoen het? Wel, laat Ek dit so vir julle verduidelik. Hoe praat julle oor My? Julle noem My mos ‘die Een wat alles vir ons leer’ of ‘ons Leier vir wie ons onvoorwaardelik volg’. Julle is natuurlik reg. Ek is al hierdie dinge. Nou maar goed. As Ek, die Een wat julle leer en lei, julle voete was, wat sê dit vir julle? Net een ding: julle behoort mekaar se voete net so te was. Ek het nou vir julle ’n goeie voorbeeld gegee: volg daardie voorbeeld. Doen aan mekaar wat Ek aan julle gedoen het. Dit kan nie anders nie, want die werker skryf mos nie vir die baas voor wat om te doen nie. As jy iemand stuur, vertel die een wat gestuur word nie vir jou wat jy wil hê nie. Dit werk mos andersom! Dit weet julle tog. As julle regtig gelukkig wil wees, moet julle doen wat Ek nou net vir julle gesê het. Ek praat nie van julle almal nie. Ek ken julle goed, want Ek het julle as my vriende gekies. In die Skrif staan: ‘Die een wat saam met My geëet het, het my seer geskop.’ Julle sal dit sien waar word. Ek sê dit nou al vir julle. Kyk maar net. Wanneer dit gebeur, sal julle nie onkant gevang word nie, want julle sal weet dat dit moet gebeur. Wanneer dit gebeur, sal julle net al hoe meer oortuig raak wie Ek regtig is. “Dit moet julle altyd besef: sê nou Ek stuur iemand en mense ontvang hom met oop arms, is dit eintlik vir My wat hulle so ontvang. En as hulle My so met oop arms ontvang, ontvang hulle eintlik so vir God wat My gestuur het.” Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.” “Wie sou dit nou wees?” het sy volgelinge so stilletjies onder mekaar gevra. [23-24] Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.” *** Die dissipel leun toe oor: “Here, wie is dit?” Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!” Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker. Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur. Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie. My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min. Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie. Julle sal nie kan kom waar Ek gaan nie. Ek het dit mos al vir die Jode gesê. Nou sê Ek dit vir julle ook. “Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van julle. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê. “Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ‘praat’. Mense moet daarna kyk en sê: ‘Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’” Iets het Simon Petrus nog gepla. “Here, waarheen gaan U?” vra hy. “Petrus, jy kan nie nou al saam met My kom nie, maar wel later,” troos Jesus hom. Petrus was nie tevrede nie. “Here, hoekom kan ek nie nou al saamkom nie?” wou hy weet. “U weet U is vir my alles. Selfs al moet ek my lewe vir U gee, sal ek dit doen.” “Wat, Petrus? Sê jy jy is bereid om jou lewe vir My te gee? Ek het vir jou ’n verrassing. Voor die haan môreoggend vroeg kraai, sal jy al drie maal vurig ontken het dat jy iets van My weet, wat nog te sê dat jy my vriend is.” “Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie. Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed! My Vader het ’n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie? As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees. Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.” “Met alle respek, Here,” sê Tomas, “ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?” Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie. “As julle regtig geweet het wie Ek is, sou julle ook geweet het wie my Vader is. Julle sal Hom nou leer ken en besef julle het Hom al gesien.” Filippus vra toe: “Here, waar’s die Vader? Wys Hom vir ons. Dan sal ons tevrede wees en niks verder vra nie.” “Ai, Filippus, Ek is al so lank by julle en nou nog weet julle nie wie Ek regtig is nie. Luister mooi. Wie My gesien het, het ook die Vader gesien. Hoe kan jy nou nog vra dat Ek julle die Vader moet wys? Glo julle nie dat Ek en die Vader soos een is nie? Waar Ek is, is Hy en waar Hy is, is Ek. Dink goed aan alles wat Ek al vir julle gesê het. Ek het dit nie so op my eie gesit en uitdink nie. Die Vader is by My en is deel van alles wat Ek doen. Wat Hy gedoen wil hê, doen Hy deur My. Dit moet julle aanvaar: Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vind julle dit moeilik om te glo wat Ek sê? Wel, kyk dan na wat Ek doen. Oordeel maar self of dit van God af kom of nie. Glo dan op grond van wat julle sien. “Luister nou ’n bietjie hier: as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen. Om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen, want Ek gaan binnekort na my Vader toe. [13-14] Hoe gaan julle dit regkry om meer te doen? Om met God te praat deur middel van gebed gaan julle baie help. Ek sal vir julle gee wat julle vra, maar dan moet julle dit vra in gehoorsame afhanklikheid van My. Wat julle so vra, sal Ek gee. Dan sal julle dieselfde wonderlike dinge as Ek doen. Die gevolg sal wees dat God so deur My toedoen vereer word. *** “As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.” “Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees. Julle sal gou die Gees in julle lewe herken, want Hy sal heeltemal deel word van julle. Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle. Die sondige mense sal egter nie eens weet die Gees is daar nie en die Gees sal ook nie deel van hulle lewe word nie. Hulle sal ook glad nie op die golflengte van die Gees ingestel wees nie. “Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie. Ongelowige mense sal My glad nie kan sien nie. Julle sal My goed kan ‘sien’, en weet julle hoekom? Julle sal nie meer net fisiek lewe nie, maar geestelik ook, net soos Ek. Julle sal dan agterkom hoe intiem die verhouding tussen My en my Vader is. Net so intiem sal julle verhouding met My en my verhouding met julle wees. “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.” Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?” [23-24] Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe. *** Ek sê dit vir julle terwyl Ek nog hier by julle is. Later sal my Vader vir julle julle spesiale Helper, die Heilige Gees, stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het. “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie. Julle weet mos wat Ek beloof het: ‘Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe.’ As julle My liefhet, sal julle eintlik bly wees dat Ek na my Vader toe gaan, want Hy is nog belangriker as Ek. Ek vertel julle hierdie dinge nou al, sodat julle kan weet wat om te verwag. Wanneer die dinge dan gebeur, sal dit maak dat julle My net al hoe meer vertrou. Die tyd vir praat raak nou min. Die duiwel maak reg vir sy aanval. Party mense dink mos hy is baas in die wêreld. Maar hy staan nie die geringste kans nie. Hy het klaar verloor, want hy het nie ’n houvas op My nie. Ek doen egter hierdie dinge wat my Vader van My vra, sodat die mense kan besef hoe lief Ek vir my Vader is. Kom, dit is tyd om te gaan.” “Laat Ek ’n beeld gebruik om die verhouding tussen My, my Vader en my volgelinge te verduidelik. Stel julle voor my Vader is ’n druiweboer. Ek kan dan vergelyk word met ’n spesiale druiwestok. My Vader bewerk die wingerd goed en hou die lote wat uit die druiwestok groei goed dop. As daar takkies is wat net groei, maar nie ’n enkele druiwetros dra nie, sny Hy dit af. Die takkies wat druiwetrossies maak, versorg Hy mooi. Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is. Julle is soos daardie mooi versorgde takkies. My boodskap was soos ’n snoeiskêr wat julle mooi skoon gesny het. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei. “Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei. Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie. Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word. Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand. “Maar julle, as julle altyd naby aan My bly soos ’n takkie wat aan ’n druiwestok vasgegroei is en getrou doen wat Ek vra, is daar vir julle regtig goeie nuus. “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry. “En wat van my Vader, die boer? Wel, as my invloed net al meer in julle lewe gesien kan word, sal Hy tevrede wees.” “As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is. “Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer. “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag. Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel. Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen. Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.” Jesus het verder gegaan: “Mense wat nie Christene is nie, gaan die wêreld vir julle baie moeilik maak. Maar troos julle daaraan: hulle het dit al met My gedoen. Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld. Julle onthou mos nog wat Ek vir julle gesê het: ‘Die baas is belangriker as die werker.’ Daarom is dit logies dat as hulle hulle bes probeer om dit vir My so sleg moontlik te maak, hulle mos dieselfde met julle sal probeer doen. “As hulle nie luister na wat Ek vir hulle sê nie, sal hulle mos ook nie na julle luister nie. Hierdie mense ken nie my Vader wat My gestuur het nie. Daarom tree hulle so snaaks teenoor julle op. Hulle doen dit omdat julle my vriende is en na My luister. Hulle hou nie van My nie, omdat Ek vir hulle kom sê het wat reg en verkeerd is. Hulle besef natuurlik hier diep in hulleself dat hulle nie reg lewe nie, maar hulle is te hardkoppig om dit te erken. Nou het hulle geen verskoning meer vir hulle swak gedrag nie. Daarom haal hulle dit nou maar op My uit. Deur dit te doen maak hulle my Vader ook sleg. As dit nie vir My was nie, sou niemand hulle kon blameer nie. Hulle sou dan mos nie geweet het wat reg of verkeerd is nie. Toe kom Ek. Die dinge wat Ek gedoen het, het hulle nog nooit gesien nie. Niemand kon of het dit nog ooit gedoen nie. Nou neem hulle My en my Vader bitter kwalik en Ons is vir hulle soos vyande. Daarom is dit nie vreemd dat hulle so maak nie. Ons lees mos in die Skrif: ‘Hulle het niks van My gehou nie.’ Maar Ek gaan vir julle ’n spesiale Helper stuur wat van my Vader self af kom. Dit is die Heilige Gees en daar is geen ander Gees soos Hy nie. Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word. Julle kan dit doen, want julle was van die begin af saam met My.” “Ek vertel hierdie dinge vir julle sodat julle reg kan wees vir die moeilike tye wat kom. Praat van gevaarlike tye - die Jode sal julle uit hulle byeenkomste jaag en julle verbied om weer daar te kom. En dit is nie al nie! In ’n stadium sal hulle julle selfs doodmaak en dan mekaar gelukwens met die groot guns wat hulle vir God gedoen het. Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.” “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.” Sy dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Waarvan praat Hy? Wat is al hierdie praatjies van nou sien en dan weer nie sien nie, of dat Hy na sy Vader toe gaan? En wat bedoel Hy met die ‘tyd wat nader kom’? Ons wens ons het geweet, want ons verstaan nie wat hier aangaan nie.” Jesus het agtergekom dat hulle brand om te hoor wat Hy hieroor te sê het. “Wonder julle oor wat Ek vir julle gesê het? Laat Ek julle so ’n bietjie meer vertel. Dan sal julle beter verstaan. Julle gaan eers baie hartseer wees; so hartseer dat die trane oor julle wange gaan loop. Dan gaan die ongelowiges hande klap van blydskap. Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander. Weet julle hoe dit gaan wees? Dit sal wees soos ’n vrou wat ’n baba kry. Terwyl sy besig is om die baba te kry, is dit baie seer. Maar as die baba eers eenmaal daar is, is sy die ene glimlag en blydskap oor haar kind. Sy dink nie eens weer aan al die pyn nie. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.” “Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het: Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.” “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.” Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak? Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My. Ek vertel hierdie dinge vir julle met ’n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan: Ek het bewys dat Ek sterker is as enigiets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte Wenner.” So het Jesus met sy dissipels gepraat. Daarna het Hy sy oë toegemaak en gebid: “Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik u Seun regtig is. Op dié manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur. So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee. Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was. “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.” “Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie. Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk, net soos U en Ek saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U aan My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie. Dat hy sou afdwaal, het die Skrif lankal gesê.) Ek is nou op pad terug na U toe. Daarom gesels Ek met my volgelinge oor al hierdie dinge terwyl Ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur. Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is. [15-16] Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie. Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou. *** Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders as die waarheid belangstel nie. “Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken u boodskap. Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap. “Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het. Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat vind. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle hulle bes probeer vir wat waar en eg is.” “Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het. Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in ’n span saamsnoer net soos Ons in ’n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op ’n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan. Ek sal so lojaal teenoor hulle wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos, ja, volmaak, in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U my volgelinge net so liefhet soos U My liefhet. “Vader, Ek wil so graag my volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is. Vader, U doen wat reg en regverdig is. Die ongelowige mense weet nie wie U is nie en steur hulle ook nie aan U nie. Dit is so anders as Ek wat U goed ken. My volgelinge weet dat U My na hulle toe gestuur het. Ek het hulle mooi vertel wie en hoe U presies is, en Ek is nog nie klaar nie; Ek sal nog verder met hulle daaroor praat. Dan sal hulle iets van u liefde begryp. Hulle sal verstaan hoe lief U My het en wat dit beteken. Dit alles sal deel word van hulle lewe soos Ek deel van hulle lewe is.” Jesus het klaar gebid. Van die plek waar hulle saamgeëet het, is Jesus-hulle na ’n tuin toe waar die feesgangers graag gekamp het. Die tuin het aan die ander kant van die Kedronspruit gelê. Die spruit het al langs Jerusalem se stadsmuur af geloop. Jesus het graag saam met sy dissipels na dié tuin toe gegaan. Daarom het Judas, wat teen Jesus gedraai het, geweet waar om Hom te gaan soek. Judas is toe saam met ’n hele klomp gewapende mans na die tuin toe. Behalwe die soldate was daar ook ’n spul polisiemanne wat vir die hoofpriesters en Fariseërs gewerk het. Hulle was goed bewapen. Met fakkels, lanterns en ’n spul wapens het hulle Jesus gaan soek. Jesus was nie verbaas nie. Hy het geweet wat op Hom wag. Toe die klomp soldate by die tuin aankom, stap Jesus na hulle toe. “Vir wie soek julle?” vra Hy. “Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle. “Wel, dit is Ek,” antwoord Hy. (Judas het ook so ewe tussen die klomp soldate gestaan.) Toe die soldate hoor wat Jesus sê, het hulle verskrik teruggedeins en oor mekaar geval. Jesus herhaal toe sy vraag: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” sê hulle weer. “Maar Ek het dan vir julle gesê dis Ek. As julle My wil hê, los hierdie ander dan uit.” So het dit wat Jesus beloof het, waar geword. Hy het mos gesê dat Hy daarvoor sou sorg dat nie een van hulle na wie Hy moes kyk, iets oorkom nie. Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy pluk dit toe uit en kap na een van die mense wat vir die hoëpriester gewerk het. Sy naam was Malgus. Met dié tref hy Malgus teen die regteroor en sny dit morsaf. Jesus keer Petrus toe dadelik. “Nee, Petrus, bêre jou swaard! My Vader wil hê Ek moet hierdie pad loop. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees en dit nie loop nie?” Die offisier, met sy soldate en die Joodse polisie, het Jesus gegryp en Hom geboei. Hulle het Hom toe eers na Annas toe gevat. Hy was Kajafas se skoonpa. Kajafas was daardie jaar die hoëpriester. Hy was nie net die belangrikste priester nie, maar ook die voorsitter van die belangrikste Joodse godsdienstige raad. Dit was ook hy wat die Jode oortuig het dat dit beter sou wees dat Jesus doodgemaak word as wat die hele volk by die Romeine in die moeilikheid kom. Simon Petrus en nog een van Jesus se volgelinge het ongemerk op ’n afstand agter Jesus aangeloop. Petrus se vriend het Kajafas geken. Daarom kon hy in die binneplein van Kajafas se huis ingaan, want hulle het Jesus daarheen gevat. Petrus het buite by die deur gestaan en wag. Petrus se vriend kom praat toe met die hekwag en vat Petrus saam in. Die hekwag was ’n vrou. Toe Petrus by haar verbyloop, vra sy skielik: “Jong, is jy nie een van die volgelinge van hierdie gevangene hier binne nie?” “Jy verbeel jou dit,” sê Petrus. In die binneplein het hulle ’n lekker vuur gemaak, want dit was koud. Die werkers en polisie het almal om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook tussen hulle gaan staan vir so ’n bietjie hitte. Intussen het die hoëpriester Jesus onder kruisverhoor begin neem. Hy het Hom uitgevra oor sy volgelinge en oor wat Hy gepreek het. Jesus het so op al sy vrae gereageer: “Ek het oral openlik gepraat. Die tempel en bymekaarkomplekke van die Jode was my kansel. Dáár het Ek gepreek. Ek het nie iewers in die geheim opruiende toesprake gehou nie. Moet My nou nie vra om alles te herhaal nie. Gaan vra die mense wat My hoor preek het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, klap een van die polisiemanne Hom. “Is dit hoe jy met die hoëpriester praat?” bulder hy. “As Ek iets verkeerds gesê het, vertel My tog asseblief wat dit is. Maar as Ek nie iets verkeerds gesê het nie, vir wat klap jy My?” vra Jesus. Annas stuur Jesus toe na Kajafas toe. Jesus was nog geboei. Petrus het hom intussen nog daar by die vuur in die binneplein gestaan en warm maak. “Maar is jy nie een van die volgelinge van Jesus nie?” vra iemand hom. “Nee, nooit!” ontken Petrus dit. “Maar het ons jou dan nie in die tuin saam met Jesus gesien nie?” vra ’n ander een hom. Dinge het nou vir Petrus begin warm word. Die een wat hom dit gevra het, was familie van Malgus wie se oor Petrus afgekap het. Boonop het hy ook nog vir die hoëpriester gewerk. Petrus het weer ’n keer alles ontken. Sy woorde was skaars koud of die haan het gekraai. Van Kajafas se huis af het hulle Jesus na die plek toe gevat waar die Romeinse heerser gewoonlik die gevangenes verhoor het. Dit was in die sterk vesting waar Pilatus gebly het. Dit was nog baie vroeg daardie oggend. Die Jode het egter nie in die binneplein van die vesting ingegaan nie, want hulle paasfees was mos aan die gang. Daarom wou hulle nie dinge doen wat hulle onrein sou maak nie. Dit sou beteken dat hulle nie die paaslam kon eet nie. Dit wou hulle nie waag nie. Pilatus het toe maar uit die vesting na die Jode toe gestap. “Laat ek hoor,” sê hy. “Wat is julle aanklag teen hierdie man?” Die Jode val toe vinnig weg: “As hy nie so ’n klomp slegte dinge aangevang het nie, sou ons mos nie die moeite gedoen het om hom te vang en na u toe te bring nie,” sê hulle. “In daardie geval kan julle hom mos sommer self verhoor. Julle het mos wette wat vir julle sê wat om te doen,” antwoord Pilatus. “Nee, ons kan nie,” kap die Jode terug. “Ons word mos nie toegelaat om iemand tot die dood te veroordeel nie.” So het nog iets waar geword wat Jesus voorspel het. Hy het mos voor die tyd vir hulle vertel op watter manier Hy sou doodgaan. Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?” Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?” “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?” Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.” “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe. “As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.” “Waarvan praat jy? Wat is die waarheid?” vra Pilatus Hom. Na die gesprek is Pilatus toe weer buitetoe. Daar sê hy vir die Jode: “Dit lyk nie vir my of hierdie man iets verkeerds gedoen het nie. Ek wil ’n voorstel maak. Ek laat mos altyd met paasfees vir julle ’n gevangene vry. Wat daarvan as ek vir julle hierdie koning van die Jode laat gaan?” “Nooit!” skree hulle. “Ons soek Barabbas. Laat hom vir ons los!” (Barabbas was ’n Joodse terroris.) Pilatus sê toe vir sy soldate om Jesus met die sweep met stukkies yster in oor sy rug te slaan. Die soldate het nie op hulle laat wag nie. Hulle het sommer ook takkies gevat wat skerp dorings aan gehad het, ’n kroon daarmee gevleg en dit op sy kop gedruk. Hulle het ook ’n pers mantel oor Hom gegooi sodat Hy kamma soos ’n koning aangetrek was. Hulle het Hom begin spot. Hulle het kastig eerbiedig nader na Hom toe gekom en Hom dan ewe ernstig soos ’n koning gegroet. En dan het hulle Hom weer geklap. Intussen het Pilatus weer buite met die Jode gaan gesels. “Ek gaan Jesus buitetoe bring, hier na julle toe. Ek wil hê julle moet besef dat Jesus myns insiens onskuldig is.” Juis toe kom Jesus uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings opgehad en die pers mantel gedra. Pilatus kondig toe aan: “Kyk, hier is die man.” “Kruisig hom!” gil die leiers van die priesters en die polisie toe hulle Hom sien. “Nou toe, vat julle hom en kruisig hom. Ek gaan dit nie doen nie, want ek dink nie hy is skuldig nie,” was Pilatus se reaksie. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.” Dit het Pilatus nogal laat skrik. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.” Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.” Pilatus het toe allerhande planne begin maak om Jesus los te laat. Die Jode het agtergekom wat besig was om te gebeur. Hulle skree toe: “As jy dit waag om Jesus los te laat, bewys jy dat jy ook teen die keiser gedraai het. Dink net daaraan: hierdie man wil homself as koning op die troon sit. Daarmee wil hy die keiser aan die ander kant van die troon afstoot.” Hierdie woorde was vir Pilatus te veel. Hy gaan sit toe op sy stoel waarop hy gewoon-lik sy finale hofuitspraak gemaak het. Die mense het dit “die kliptrap” genoem. (In Hebreeus is dit Gabbata.) Pilatus het Jesus ook laat kom. Dit was omtrent twaalfuur op die dag waarop die Jode alles reggemaak het vir die paasfees. Pilatus kondig toe plegtig aan: “Kyk, hier staan julle koning.” Toe skree die Jode eers: “Weg met hom! Weg met hom! Kruis toe!” Pilatus vra hulle toe: “Bedoel julle dit regtig? Moet ek regtig julle koning aan ’n kruis laat hang tot hy dood is?” Die leiers onder die priesters sê toe: “Hierdie man is g’n ons koning nie. Ons het net een koning: die keiser van Rome.” Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat). Daar het hulle Hom aan die kruis opgehang om dood te gaan. Saam met Hom het hulle nog twee gekruisig, een aan elke kant, met Hom in die middel. Pilatus het ook ’n nota geskryf en dit aan Jesus se kruis laat vasmaak. Dit het gesê waarom Jesus gekruisig is. Hy het geskryf: “Jesus, uit Nasaret. Die koning van die Jode.” Pilatus het die nota in drie tale laat skryf: Hebreeus, Latyn en Grieks. Die kruise het vlak by die stad gestaan. Baie Jode het daar verbygestap en gelees wat Pilatus se nota gesê het. Die leiers van die priesters was baie ontevrede daaroor. Hulle is reguit na Pilatus toe. “Moet asseblief nie skryf ‘koning van die Jode’ nie. Dis nie reg nie. Skryf liewer: ‘Hierdie man het beweer: Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het voet by stuk gehou: “Wat ek geskryf het, is finaal. Dit bly net so.” Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie. Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.” Dit is presies wat hulle gedoen het. Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.” Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg. Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.) Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond. Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas. Dit het op die Vrydag gebeur. Mense was besig om alles reg te kry vir die paasfees. Dit was vir hulle ’n baie belangrike dag, want daardie jaar het die fees en die sabbat saamgeval. Die Jode se godsdienstige reëls het dit verbied dat Jode op die sabbat nog aan ’n kruis mag hang. Hulle is toe na Pilatus toe en het hom gevra om die mense wat aan die kruis gehang het se bene te breek. Die skok sou help dat hulle gouer doodgaan. Dan kon hulle hulle van die kruis afhaal voor die sabbat begin. Pilatus het gesê hulle kon dit laat doen. Die soldate het toe die bene gebreek van die twee mans wat saam met Jesus daar gehang het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie. Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop. Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel. Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek: “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.” Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat. Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg. Hulle het Jesus se liggaam mooi in linne toegedraai. Die linne was deurweek van die mirre en aalwyn. Dit is wat die Jode destyds gedoen het as hulle iemand begrawe het. Jesus se kruis het in ’n tuin gestaan. In die tuin was daar ook ’n graf wat pas klaar uit die rots gekap was. Dit het soos ’n kamer gelyk. Hulle het Jesus net daar begrawe. Hy was die eerste een wat in dié grafkamer begrawe is. Dit was gerieflik en naby, want die tyd was min. Hulle moes ook nog alles vir die Jode se fees gaan regkry voor die son gesak en die sabbat begin het. Daardie Sondagmôre was die son nog nie eens op nie, toe was Maria Magdalena al by die graf. Sy het dadelik gesien dat iemand die groot klip voor die ingang van die graf weggerol het. Toe sy dit agterkom, vlieg sy om en hardloop na Simon Petrus en die ander dissipel toe (dit was die een van wie Jesus baie gehou het). “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg!” hyg sy. “Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.” Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe. Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom. Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê. Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê. Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar. “Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?” Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.” “Maria!” sê Jesus. Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.) “Moenie My vashou nie,” sê Jesus. “Ek het nog nie na my Vader toe teruggegaan nie. Gaan liewer gou terug na my broers toe. Gaan sê vir hulle: Ek gaan terug na my Vader en julle Vader; ja, Ek is op pad na my God en julle God.” Maria Magdalena is toe daar weg na die ander volgelinge van Jesus toe. “Ek het die Here nou net lewendig gesien!” roep sy uit. Opgewonde vertel sy alles wat Jesus gesê het. Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.” Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!” “Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.” Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.” Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!” Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!” Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.” Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak. Daar was nog ’n geleentheid toe Jesus so saam met sy dissipels was. Dit was by die Meer van Tiberias (die ander naam is die See van Galilea). So het dit gebeur: ’n klompie van Jesus se getrouste volgelinge was bymekaar (dit was Simon Petrus, Tomas Tweeling, Natanael - hy het uit Kana in Galilea gekom - Sebedeus se seuns en nog twee ander). Petrus was lus om te gaan visvang. Die ander is toe saam met hom. Hulle is met ’n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ’n enkele vis gevang nie. Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal. Die dissipels was natuurlik salig onbewus daarvan dat dit Jesus was. “En toe,” roep Jesus, “het julle enigiets gevang?” “Nee wat,” roep hulle terug. “Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle. Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis. Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree. Toe hulle daar land, sien hulle dat daar alreeds ’n vuurtjie brand met vis wat daarop braai. En daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ’n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.” Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. “Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here. Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis. Dit was die derde keer dat Jesus so aan sy getroue volgelinge verskyn het nadat Hy uit die dood opgestaan het. Na ete vra Jesus vir Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as wat hierdie ander My het?” “Ja, Here,” kom dit van Petrus. “U weet hoe toegewy en lojaal ek teenoor U is.” “Kyk dan asseblief na my lammers,” vra Jesus toe. ’n Tweede keer vra Jesus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here. U weet mos hoe lief ek U het,” sê Petrus weer. “Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op,” vra Jesus. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? Kan Ek heeltemal op jou lojaliteit staatmaak?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus so aanhou. “Here,” sê hy toe, “U hoef nie eens te vra nie, want U weet alles; ook wat in my hart aangaan. U weet mos hoe lief ek vir U is.” “Sorg dan vir my skape,” sê Jesus. “Ek wil vir jou iets belangriks sê. Toe jy jonk was, het jy self aangetrek en jy kon stap waar jy wou. Maar as die ouderdom jou inhaal, sal jy dit nie eens meer kan doen nie. Jy sal maar net jou hande vraend kan uitsteek. Ander sal dan kom en jou aantrek en jou dra waar jy nie wil wees nie.” (Daarmee het Jesus gesinspeel op die manier waarop Petrus sou sterf. Met sy dood sou hy in alle geval vir God eer.) “Kom saam met My,” sê Jesus toe vir Petrus. Toe Petrus omkyk, sien hy die volgeling van wie Jesus baie gehou het, kom ook agter hulle aangestap. (Dit was die dissipel wat aan tafel vir Jesus gevra het wie Hom sou verraai.) Petrus sê toe vir Jesus: “En wat van hom, Here?” “Dit het eintlik niks met jou te doen nie, Petrus, selfs al sou Ek wou hê dat hy moes bly lewe tot Ek weer kom. Moenie jou oor sulke dinge bekommer nie. Sorg net dat jy by My bly!” sê Jesus. Dit is waar die storie begin het dat hierdie volgeling van Jesus nie sou doodgaan nie. Dit was egter nie wat Jesus bedoel het nie. Jesus het gesê as Hy dit sou wou hê, sou die man kon bly lewe tot Hy terugkom. En dit het niks met Petrus te doen nie. Hierdie volgeling is juis die een wat alles so deeglik neergeskryf het en met soveel oortuiging daaroor praat. Ons almal weet dat wat hy vir ons vertel die waarheid is. Jesus het ook nog baie ander dinge gedoen. As dit alles neergeskryf sou moes word, twyfel ek of daar genoeg plek in hierdie wêreld sou wees om al daardie boeke te bêre. Teofilus, in my eerste boek het ek jou vertel van alles wat Jesus gedoen het tot op die dag dat Hy van sy apostels afskeid geneem en na sy hemelse woning teruggegaan het. Dit was kort nadat Hy sy laaste opdragte aan hulle gegee het. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy oor ’n tyd van 40 dae ’n hele paar keer aan sy apostels verskyn om vir hulle te wys dat Hy regtig lewe. Hy het gereeld met hulle oor God se nuwe wêreld gepraat. Eenkeer toe hulle almal so saam was, het Jesus vir hulle gesê: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie. Bly daar totdat my Vader die belofte wat Hy aan julle gemaak het, waar laat word. Vroeër het Ek vir julle gesê dat Johannes die Doper julle met water doop, maar dat God julle binnekort met die Heilige Gees gaan doop. Dit is hierdie belofte waarop julle nog so ’n klein rukkie moet wag.” ’n Ander keer het een van die apostels vir Jesus gevra: “Here, sê asseblief vir ons, gaan U Israel nou weer tot sy vorige glorie herstel, soos in die dae toe ons nog ons eie koning gehad het?” Daarop het Jesus geantwoord: “Dit is vir God om oor hierdie dinge te besluit, nie vir julle nie. “Al wat julle hoef te weet, is dat God met sy groot krag in julle lewe sal werk wanneer die Heilige Gees na julle toe kom. Dan gaan julle oral oor My praat: hier in Jerusalem, maar ook in die hele Judea en Samaria. Ja, selfs tot aan die verste uithoeke van die wêreld.” Na hierdie woorde het Jesus van die Olyfberg af na die hemel teruggekeer. Terwyl die dissipels nog staan en kyk hoe Hy in die wolke verdwyn, het twee mans uit die hemel by hulle kom staan. Hulle het spierwit klere aangehad. Een van die mans vra toe vir die dissipels: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk? Dink julle dat julle nooit weer vir Jesus gaan sien nie? Hierdie selfde Jesus wat nou voor julle oë na sy hemelse woonplek toe vertrek het, sal op presies dieselfde manier na julle toe terugkom.” Die Olyfberg waar Jesus van sy dissipels afskeid geneem het, is sowat ’n kilometer van Jerusalem af. Daarvandaan het die apostels toe teruggestap stad toe, na ’n groot kamer op die boonste verdieping van een van die geboue. Daar het hulle gereeld bymekaargekom. Al die oorblywende apostels was daar: Petrus, Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon wat ’n Seloot was, en ook Judas die seun van Jakobus. Hulle het elke dag saamgebid. Van die gelowige vroue het saam met hulle kom bid, so ook Maria, Jesus se ma, sy broers en ’n klompie ander gelowiges. Later was daar by die 120 mense in die kamer bymekaar. Op ’n dag het Petrus vir hulle gesê: “Broers en susters, ek wil eers met julle oor daardie verraaier van ’n Judas praat. Ek kan nou nog nie glo dat hy kop in een mus was met die spul wat vir Jesus gevang het nie. Ja, hy het dit alles beplan. “Om te dink dat Judas heeltyd een van ons was! Met die omkoopgeld wat hy gekry het om Jesus te verraai, het hy vir hom ’n stuk grond gaan koop. Maar hy is ’n paar dae gelede daar dood. Hy het hom doodgeval. Sy binneste het oopgebars van die val sodat hy hom doodgebloei het. Dalk het julle ook daarvan te hore gekom. Judas se dood is immers hoofnuus hier in Jerusalem se strate. Die mense noem daardie stuk grond van hom nou Bloedgrond, of soos hulle in Hebreeus sê: Akeldama. “In een van die psalms van Dawid staan daar: Laat sy grond leeg staan sodat niemand daar gaan bly nie. “Dawid het ook gesê: Iemand anders moet sy werk oorneem. “Judas se plek in ons kring van apostels is nou leeg. Ons moet iemand in sy plek kies. Maar dit moet iemand wees wat heeltyd saam met ons in Jesus se geselskap was, van daardie dag af toe Hy deur Johannes die Doper gedoop is totdat Hy hemel toe is.” Twee name is toe opgegee: Josef Barsabbas (sy bynaam was Justus) en Mattias. Toe het al die gelowiges gebid en gesê: “Here, U weet presies wat in mense se binneste aangaan. U ken ons almal deur en deur. Wie van hierdie twee mans wil U hê moet Judas se plek as apostel oorneem? Judas is hierdie wonderlike werk kwyt omdat hy nie na U geluister het nie.” Daarna het hulle lootjies getrek. Mattias is as die nuwe apostel gekies. Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul. Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom. Almal is toe met die Heilige Gees volgemaak. Hulle het dadelik in ander tale begin praat. Die Gees het hulle in staat gestel om dit te doen. Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem. Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was. Hulle was stomgeslaan toe hulle daar aankom en hoor hoe die gelowiges in verskillende tale praat. “Hoe kan dit wees?” het hulle vir mekaar gevra. “Hierdie mense kom dan daar van Galilea af. Hoe kry hulle dit reg om nou in ons eie taal met ons te praat? Hier tussen ons is mense van oral in die wêreld. Kyk net, hier is Perse, Mediërs, Elamiete en ook mense wat in Mesopotamië bly. Ons merk ook mense op uit Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en uit dele van Libië. Ja, daar staan selfs ’n klompie uit Rome. Behalwe al die Jode van oor die hele wêreld staan hier ook mense uit ander volke wat later die Joodse geloof aangeneem het. Daar is inwoners van die eiland Kreta en ook ’n groep Arabiere. En tog hoor ons almal nou in ons eie taal hoe dié mense met ons praat oor al die groot dinge wat God doen.” Die skare kon nie mooi uitmaak wat aan die gebeur was nie. Hulle het verbaas vir mekaar gevra: “Wat gaan aan?” ’n Paar spotters het gesê: “Hierdie spul mense is dronk. Hulle het heeltemal te veel wyn gedrink.” Saam met die elf ander apostels het Petrus vir die skare beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Vriende, mede-Jode en inwoners van Jerusalem, luister nou mooi na my. Hierdie mense is nie dronk soos party van julle dink nie. Dis dan nou eers nege-uur in die oggend. Kom ek vertel julle wat hier aan die gebeur is. Die woorde van Joël het pas waar geword. Julle onthou hoe hy geskryf het: ‘Aan die einde van die tyd,’ sê God, ‘sal Ek my Gees gee aan almal wat in My glo. Dan sal Ek my wil aan julle seuns en julle dogters bekendmaak. Hulle sal profete wees wat my wil bekendmaak. ‘Met julle jongmense sal Ek in visioene praat. En met die ouer mense onder julle sal Ek in drome praat. Op almal wat My dien, mans en vroue, sal Ek aan die einde van die tyd my Gees uitstort. ‘Hulle sal my wil aan ander mense bekendmaak. Ek sal ook groot tekens in die lug en op die aarde laat gebeur. Bloed en vuur en donker rook sal hemel en aarde vul. Ek sal die son pikswart maak, en die maan so rooi soos bloed. ‘Al hierdie dinge sal gebeur kort voordat die groot dag van die Here aanbreek; daardie dag waarop Hy na die wêreld toe terugkom. Almal wat die Here se Naam aanroep en Hom smeek om hulle sondes weg te vat, sal gered word.’” “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek nou vir julle wil sê. Jesus van Nasaret is die Man wat deur God aangestel is om groot wonderwerke en tekens onder julle te doen. Hy is ’n rukkie gelede hier in Jerusalem deur ’n spul goddelose mense gevang, presies net soos God dit beplan het. Daarna het julle almal Hom laat doodmaak. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. Hy het al die bande van die dood van Jesus afgegooi en Hom lewendig daar laat uitstap. Hoor wat Dawid oor Jesus geskryf het: ‘Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van vreugde. Ek vertel vir almal hoe goed die Here is. Nie eens die dood kan my meer bangmaak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat vergaan nie. U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei. Ek jubel daaroor.’ “Vriende, julle weet net so goed soos ek dat Dawid lankal dood en begrawe is. Sy graf is hier by ons in Jerusalem. Dawid was egter ’n boodskapper van God. Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers. Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie. “Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het. Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor. “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel. Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’ “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.” Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra. “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.” Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.” Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop. Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan. Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid. Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen. Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad. Hulle liefde vir Hom en vir mekaar het hulle in ’n hegte eenheid saamgesnoer. Daarom was hulle bereid om selfs hulle besittings met mekaar te deel. Hulle het alles verkoop wat hulle besit het en die geld vir die armes gegee. Dag na dag het hulle ook na die tempel toe gegaan om God daar te aanbid. Hulle het ook by verskillende huise saamgeëet. Hierdie maaltye was glad nie uitspattig nie. Al die gelowiges was vol vreugde. Hulle het God heeltyd geprys omdat Hy so groot en goed is. Die gelowiges se lewenstyl het die ander mense in Jerusalem aangegryp. Almal het daaroor gepraat. Daarom het daar elke dag baie mense tot geloof in Christus gekom. Op ’n dag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om te bid. Dit was teen drie-uur die middag. Hulle het by een van die tempel se ingange met die naam Mooipoort ingestap. Daar het ’n man elke dag gesit en bedel. Hy was van sy geboorte af verlam. Toe Petrus en Johannes by hom verbystap, vra hy hulle of hulle nie ’n geldjie vir hom het nie. Petrus het gaan staan. “Kyk na my!” het hy vir die verlamde gesê wat daar voor hom op die grond gesit en staar het. Die man was dadelik die ene oë en ore. “Ek het nie ’n sent op my naam nie,” het Petrus gesê. “Maar ek gaan vir jou iets baie beters gee. Ek sê nou vir jou in die Naam van Jesus Christus: staan op en loop!” Petrus vat toe die man se regterhand en trek hom op. Onmiddellik het sy voete en enkels nuwe lewe gekry sodat hy kon opstaan en loop. Hy het toe saam met hulle by die tempel ingegaan. Hy was so bly dat hy rondgespring het van vreugde terwyl hy hardop lag en huil. Hy het God se Naam aanmekaar grootgemaak. Sy vreugdedanse het gou die ander mense se aandag getrek. Toe hulle agterkom dat dit hy was wat elke dag by die Mooipoort gesit en bedel het, kon hulle hulle oë nie glo nie. Toe die mense ook nog sien hoe die man sy arms om Petrus en Johannes gooi, het hulle almal begin stroom na die Pilaargang van Salomo, waar Petrus-hulle gestaan het. Petrus het toe met die groot skare begin praat wat om hulle saamgedrom het: “Vriende, volksgenote, hoekom is julle so verbaas oor wat so pas gebeur het? Dink julle dalk dat ons hierdie man uit ons eie krag gesond gemaak het? Het dit gebeur omdat ons so godsdienstig is? Natuurlik nie. Al wat gebeur het, is dat die God van Abraham en Isak en Jakob vir Jesus, sy eie Seun, op hierdie manier eer kom aandoen het. Hy het hier voor julle almal kom wys hoe groot en sterk Jesus regtig is. “Onthou julle nog hoe julle nou die dag vir Jesus soos ’n misdadiger aan Pilatus uitgelewer het? Julle het julle rug vir Hom gedraai toe Pilatus julle die keuse gegee het om Hom los te laat. Julle het selfs gevra dat ’n moordenaar losgelaat word eerder as Hy. So het julle Hom wat aan julle die ware lewe kan gee, gaan staan en doodmaak. Maar gelukkig het God Jesus weer lewendig gemaak. Ons het dit met ons eie oë gesien. “Wel, Jesus het nou deur ons hierdie verlamde man gesond gemaak. Julle almal kan dit tog sien. Sy geloof in Jesus was genoeg om hom te laat opstaan en loop.” “Vriende, ek weet dat julle en julle leiers glad nie besef het waarmee julle besig was toe julle Jesus doodgemaak het nie. Tog het God lankal deur sy boodskappers gesê dat die Messias sou kom ly. Daarom het Hy julle onkunde gebruik om hulle woorde waar te laat word. “Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe. Hy sal al julle sondes wat tussen julle en Hom staan, uit die pad vat. Hy sal nooit weer daaraan dink nie. “God se feestyd sal dan in julle lewe aanbreek. Hy gaan vir Jesus Christus binnekort na julle toe terugstuur. Totdat dit gebeur, bly Hy in sy hemelse woonplek. Dit is hoekom julle Hom nie nou kan sien nie. Maar Jesus sal sekerlik terugkom om alles hier op aarde nuut te maak. Dit het God lank gelede deur sy profete belowe. Moses het al vir julle gesê: ‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister. Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’ “Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê. “Julle is mos die nageslag van die profete. God het sy groot ooreenkoms met julle voorvaders gesluit. Hy het vir Abraham gesê: ‘Baie mense hier op aarde sal nog my goedheid beleef omdat Ek hierdie ooreenkoms met jou en jou nageslag gesluit het.’ “Julle staan vandag heel voor in die ry. Nadat God Jesus weer lewendig gemaak het, het Hy Hom heel eerste na julle toe gestuur om te wys hoeveel Hy vir julle omgee. Daarom moet julle julle sondes laat staan.” Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom. Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan. Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi. Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend. Intussen het baie mense in Christus begin glo. Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei. Die volgende oggend het al die belangrikste godsdienstige leiers van Israel wat op die Joodse Raad sitting gehad het in Jerusalem vergader. Behalwe die skrifkenners en volksleiers was die hoëpriester Annas en lede van sy familie, soos Kajafas, Johannes en Aleksander, ook daar. Petrus en Johannes is tot in die middel van die vertrek gebring waar hulle bymekaar was. Toe vra hulle die apostels: “Sê vir ons, waar kry julle die krag vandaan om so ’n wonderwerk te doen? En wie het vir julle gesê om dit te doen?” Petrus was vol van die Heilige Gees se groot krag. Hy het dadelik geantwoord: “Geagte leiers van die volk en raadslede, ons staan vandag hier voor julle omdat ons ’n siek man gesond gemaak het. Hierdie man is in die Naam van Jesus Christus, die Man van Nasaret, genees. Julle weet van wie ek praat, want julle het Jesus ’n rukkie terug aan ’n kruis laat vasspyker. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. “Julle het julle lelik misreken met Jesus. Julle het Hom doodgemaak en gedink julle is ontslae van Hom. So het julle die belangrikste klip in die gebou verwerp. Jesus is nou die belangrikste Persoon in die hemel. Daar is geen ander manier hoe julle in die regte verhouding met God kan kom as deur Hom nie. Niemand anders in die hemel of hier op aarde kan julle nou red nie.” Die lede van die Raad was verstom oor Petrus en Johannes se woorde, veral omdat hulle nie geleerde mense was nie. Tog was hulle nie bang om oor Hom te praat nie. Om alles te kroon het die man wat verlam was ook nou gesond langs hulle gestaan. Die Joodse Raad het Petrus en Johannes beveel om buite te wag terwyl hulle met mekaar beraadslaag. “Wat moet ons met hulle doen?” het hulle mekaar gevra. “Almal in Jerusalem weet teen hierdie tyd al wat gister in die tempel gebeur het. Ons kan dit nie wegpraat nie. Al wat ons nou kan doen, is om hulle te verbied om verder in die naam van daardie Jesus met die mense te praat. So sal ons ten minste keer dat hierdie storie verder versprei.” Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat. Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande. “U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê: ‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’ “Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word. “Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak. Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie. God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. [34-35] Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het. *** So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee. Ananias en Saffira, ’n egpaar in die gemeente, het ook ’n stuk grond verkoop. Ananias het ’n deel van die wins in sy sak gesteek en die res vir die apostels gevat. Hy het gemaak asof hy al die geld aan hulle gegee het. Sy vrou, Saffira, het ook geweet van sy skelmstreek. Petrus het egter dwarsdeur hom gesien. “Hoekom het jy toegelaat dat Satan ’n houvas op jou kry?” het hy vir Ananias gevra. “Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur ’n deel van die geld vir jouself te hou terwyl jy gemaak het asof jy alles aan ons kom gee het. Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.” Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak. ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God. Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het. Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.” Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.” Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul. Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom. Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom. Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers. Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap. Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees. Die Joodse Raad kon nie anders as om van die wonderwerke van die apostels kennis te neem nie. Dit het hulle baie jaloers gemaak. Daarom het die hoëpriester en die ander godsdienstige leiers op ’n dag besluit om hulle te laat vang. Kort daarna is die apostels gevang en in die tronk gestop. Maar ’n engel van die Here het dieselfde nag nog die tronk se deure kom oopsluit. Die engel sê toe vir hulle: “Moenie mismoedig word nie. Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.” Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep. Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê: “Toe ons daar by die tronk kom, was die deure gesluit en al die wagte op hulle pos. Maar binnekant kon ons geen spoor van daardie klomp mans vind nie. Hulle is skoonveld.” Almal was dronkgeslaan daaroor. Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud. Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.” Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat. Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê: “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.” Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie. “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het? Maar God het Jesus nou met groot eer beklee. Hy het aan Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. God het Hom ook aangestel as die Heerser en Verlosser van die hele Israel. Almal wat in Jesus glo, se sondes word deur Hom vergewe. Hy gee vir hulle elkeen ’n splinternuwe lewe. “Ons vertel julle nou die reine waarheid. Die Heilige Gees, wat God aan elkeen gee wat na Hom luister, weet dit.” Toe die Joodse Raad dit hoor, was hulle woedend. Hulle wou die apostels net daar doodmaak. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê: Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie. Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.” Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat. Die apostels was baie bly toe hulle by die Joodse Raad uitstap. Hulle was dankbaar dat hulle hierdie vernedering en slae kon verduur omdat hulle in Jesus glo. Hulle het hulle nie aan die Joodse Raad se waarskuwings gesteur nie, maar aangehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis die nuus bekend te maak dat Jesus die Christus is. Die kerk in Jerusalem het intussen al hoe meer lidmate bygekry. Mense van oor die wêreld het by hulle aangesluit. Toe ontstaan daar ’n krisis. Die gelowiges wat net Grieks kon praat, het op ’n dag begin voel dat diegene in die gemeente wat net Hebreeus praat, teen hulle diskrimineer. Party van die weduwees wat Grieks gepraat het, het volgens hulle te min kos gekry by die geleenthede waar die apostels elke dag kos aan die armes uitgedeel het. Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ’n gemeentevergadering belê. “Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,” het hulle vir die gelowiges gesê. “Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem. Maar dit moet mans wees wat julle almal ken en vertrou. Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak.” Die gemeente was baie tevrede met dié plan. Hulle het toe die volgende mans gekies: Stefanus, iemand wat die Here met sy hele lewe vertrou het en wat vol van die krag van die Heilige Gees was, asook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus uit Antiogië. Hy het hom vroeër tot die Joodse geloof bekeer. Die apostels se prediking het veroorsaak dat baie mense in Jerusalem volgelinge van Jesus geword het. Selfs ’n groot groep priesters het tot bekering gekom en in Hom begin glo. Stefanus, een van die sewe helpers, het God se goedheid en krag elke dag beleef. Net soos die apostels het hy ook baie wonderwerke onder die mense gedoen. Daar was ’n klomp Jode wat niks gehou het van wat Stefanus sê nie. Hulle het in ’n sinagoge in Jerusalem bymekaargekom waar mense wat eens op ’n tyd slawe was vir God aanbid het. Hierdie mense, wat uit gebiede soos Sirene, Aleksandrië, Silisië en Asië gekom het, het met hom begin stry. Maar hulle het elke keer sleg daarvan afgekom. Hulle was nie opgewasse teen Stefanus se insig in God se raadsplan nie. Later was hulle so vies dat hulle in die geheim ’n paar mense geld aangebied het om te sê dat Stefanus beledigende dinge teen God en Moses kwytgeraak het. Toe hierdie vals stories by die mense en by die godsdienstige leiers uitkom, was daar groot ongelukkigheid in Jerusalem. Die Joodse Raad het dadelik besluit om in te gryp. Hulle het ’n klompie polisiemanne gestuur om Stefanus te vang en hom voor hulle te daag. Die mense wat allerhande stories oor hom versprei het, het ook by die verhoor opgedaag en gesê: “Hierdie man sê die verskriklikste dinge teen ons heilige tempel en teen die wet van God. Ons het selfs gehoor hoe hy nou die dag gesê het dat daardie Jesus van Nasaret in wie hy glo, die tempel sal afbreek. Hy sal ook al die wette afskaf wat Moses vir ons gegee het.” Toe hierdie aanklag teen Stefanus ingebring is, het die Joodse Raad hom geskok aangestaar. Terwyl hulle nog so kyk, het hulle agtergekom dat sy gesig begin skyn soos ’n engel s’n. “Wat het jy hierop te sê?” het die hoëpriester vir Stefanus gevra. “Vriende, hooggeagte raadslede, luister asseblief baie mooi,” het Stefanus geantwoord. “Ek wil graag met julle oor God praat. Aan Hom kom al die eer toe. Hy is die Heilige wat Hom aan Abraham kom bekendmaak het toe hy nog daar in Mesopotamië gebly het. Dit het gebeur nog voor Abraham na Haran getrek het. God het vir hom gesê: ‘Jy moet uit jou land trek. Vat al jou familielede saam met jou. Ek sal jou wys na watter land toe jy moet gaan.’ “Abraham het toe padgegee uit die land van die Galdeërs en in Haran gaan bly. Na sy pa se dood het God hom laat trek na hierdie land waar julle nou bly. “Toe Abraham hier aangekom het, het hy nie die land op ’n skinkbord gekry nie. Aan die begin het hy nie eens ’n stuk grond of ’n kind gehad nie. Tog het God hom belowe dat sy nageslag eendag hierdie hele land sou bewoon. “Hy het bygevoeg dat hulle eers sowat 400 jaar lank in ’n vreemde land sou bly. Daar sou hulle geen eie grond hê nie. Hulle sou as slawe werk en deur ander mense mishandel word. “‘Maar moenie jou bekommer nie, Ek sal afreken met daardie volk wat jou nageslag so sleg sal behandel,’ het God vir Abraham gesê. ‘Dan sal Ek hulle daar gaan haal en na hierdie land toe bring sodat hulle My hier kan kom dien.’ “God het toe ’n ooreenkoms met Abraham gesluit. As bewys het Hy vir hom ’n teken aan sy liggaam gegee: die besnydenis. Abraham het daarna ’n seun gehad. Hy het hom Isak genoem. Agt dae na sy geboorte het hy hom besny. Isak was Jakob se pa, en Jakob die pa van die twaalf stamhoofde van ons volk.” “Hierdie stamvaders was egter jaloers op hulle broer Josef. Daarom het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Josef is deur sy nuwe eienaars weggevat Egipte toe. Maar God was heeltyd by hom. Hy het hom deur elke probleem en elke krisis gehelp. Josef se groot insig en verstand het die aandag getrek van die farao, die koning van Egipte. Kort voor lank het hy hom aangestel as hoof oor die hele Egipte en oor sy huishouding. “In daardie tyd was daar ’n groot hongersnood in Egipte en Kanaän. Die mense het niks gehad om te eet nie. Ons voorouers het ook baie swaargekry. Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop. Tydens hierdie besoek het Josef vir sy broers gesê wie hy regtig is. Hy het sy familie ook aan die farao gaan bekendstel. Daarna het hy sy pa, Jakob, en die res van sy familie van sowat 75 mense laat haal om in Egipte te kom bly. Jakob is uiteindelik daar dood, so ook al ons stamvaders. Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.” “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word. “In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg. Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het. Gaan jy my nou ook doodmaak?’ “Moses het groot geskrik toe hy hoor wat die man sê. Hy het besef dat almal binnekort sou weet wat hy met die Egiptenaar gedoen het. Daarom het hy toe uit Egipte padgegee en as ’n vreemdeling in die land Midian gaan bly. Daar het hy getrou en die pa van twee seuns geword.” “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn. Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos: ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk. Die Here sê toe vir hom: ‘Betoon respek vir My! Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. Jy is in die teenwoordigheid van die lewende God! “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’ “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het. “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen. “Dit is hierdie selfde Moses wat op ’n dag vir die Israeliete gesê het: ‘God sal eendag ’n boodskapper net soos ek uit julle midde laat voortkom.’ “Dit is ook Moses wat op die berg Sinai met die engel van die Here gaan praat het. Daarna het hy God se wil aan ons voorvaders in die woestyn bekendgemaak. Hy het al hierdie woorde wat lewe gee by die Here self ontvang en dit aan hulle almal gaan meedeel. Maar ons voorvaders het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het begin terugverlang na die tyd in Egipte en by Aäron gaan kerm: ‘Maak asseblief vir ons ’n paar gode wat ons met ons eie oë kan sien en wat voor ons kan uittrek. Hierdie Moses wat ons uit Egipte laat trek het, het verdwyn.’ “Hulle het toe vir hulle ’n afbeelding van ’n kalf gemaak en allerhande offers daarvoor gebring. Hulle was baie trots op hulle mooi handewerk. God was egter baie kwaad daaroor, maar Hy het hulle laat aangaan met hulle sondes. Hy het toegelaat dat hulle elke nuwe god aanbid waarvan hulle te hore gekom het. Hulle het presies gedoen wat die Here later deur een van die profete gesê het: ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’” “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê: ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen. Ek het vir Myself ’n hemelse woning gebou.’” Stefanus het daarna vir die Joodse Raad gesê: “Julle klomp hardekoppe. Julle dra miskien die teken van die besnydenis aan julle liggaam, maar julle harte en julle koppe is nog glad nie besny nie. Julle doen net mooi niks wat God vir julle sê om te doen nie. Julle luister nie na die Heilige Gees se stem nie. Julle maak presies net soos al julle voorgeslagte. “Dink net wat julle voorvaders met die Here se boodskappers aangevang het. Hulle het elkeen vervolg en doodgemaak wat dit gewaag het om met hulle oor die Messias, oor God se Gestuurde, te praat. Julle is niks anders as hulle nie. Is dit dan nie julle spul wat Christus vermoor het toe Hy na ons toe gekom het nie? “Julle was so gelukkig om God se wet uit die hand van sy engele te ontvang. Maar julle het nooit so ver gekom om te doen wat die wet sê nie.” Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop: “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.” Na hierdie woorde het daar chaos losgebars. Party van die raadslede het hulle ore toegedruk omdat hulle nie verder na Stefanus se woorde wou luister nie. Ander het opgespring en op hom afgestorm. Hulle het hom gegryp en uitgesleep tot buitekant die stadsmure. Daar het hulle hom met klippe begin gooi. Party van die mans het hulle hemde uitgetrek sodat hulle Stefanus nog makliker onder die klippe kon steek. Hulle het ’n jongman met die naam Saulus gevra om hulle klere op te pas. Terwyl die klippe op Stefanus neergereën het, het hy gebid: “Here Jesus, neem my nou na U toe.” Toe het hy op sy knieë neergeval en hard uitgeroep: “Here, moenie dié sonde teen hierdie mense laat tel nie! Vergeef hulle.” Dit was Stefanus se laaste woorde. Hy het daarna inmekaargesak en is daar op die plek dood. Toe dit gebeur, het Saulus al die klipgooiers gaan gelukwens met die moord wat hulle gepleeg het. Stefanus se dood was net die geleentheid waarop die godsdienstige leiers in Jerusalem gewag het. Hulle het nou met mag en mening onder die gelowiges in die stad ingeklim en hulle oral begin vervolg. Dit het veroorsaak dat die gelowiges in alle rigtings dwarsdeur Judea en Samaria gevlug het. Omtrent net die apostels het in Jerusalem agtergebly. Stefanus is intussen begrawe deur ’n paar mans wat God met groot toewyding gedien het. Hulle was hartseer oor sy dood. Saulus was daarop uit om die kerk heeltemal uit te roei. Hy het van huis tot huis gegaan en elke gelowige man en vrou wat hy in die hande kon kry, hardhandig laat vang en in die tronk gestop. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het. Daar het ook ’n towenaar in die stad gebly met die naam Simon. ’n Lang tyd al het hy die inwoners in vervoering gehad met sy towery. Simon het vir hulle vertel dat hy ’n baie magtige man is wat oor besondere kragte beskik. Oud en jonk het kort voor lank geglo hy is ’n god. Oral waar hulle hom op straat sien loop het, het hulle vir mekaar gesê: “Kyk, daar is daardie groot kragman van God.” Almal het Simon op die hande gedra. Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het. Die apostels in Jerusalem het intussen gehoor dat God besig was om mense oral in Samaria met sy goedheid aan te raak. Hulle het vir Petrus en Johannes soontoe gestuur. Hulle twee moes gaan bid dat hierdie mense ook die krag van die Heilige Gees in hulle lewe ontvang, want op daardie tydstip was hulle nog nie met sy krag vervul nie. Hulle was nog net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Toe die apostels daar aankom, het hulle hulle hande op die mense geplaas en vir hulle gebid. Dadelik het die krag van die Gees toe oor hulle almal gekom. Simon het gestaan en kyk toe die apostels hulle hande op die mense geplaas het en hulle met die Heilige Gees se krag vervul is. Dadelik het hy hulle ’n klomp geld aangebied en vir hulle gesê: “Vertel my wat julle geheim is. Vat die geld en gee my asseblief ook van julle krag sodat elkeen op wie ek my hande sit, ook die Heilige Gees kan ontvang.” Petrus het hom skerp geantwoord: “Gaan na die verderf toe met jou geld en al! Dink jy regtig dat jy God se hemelse Geskenk met geld kan koop? Die Heilige Gees is nie te koop nie. Wat soek jy hier? Jy hoort nie hier tussen ons nie. Jou binnekant is een groot stuk sonde. God weet dit baie goed. Daarom moet jy jou lewe radikaal verander. Laat staan dadelik al jou goddelose dade. Vra God om jou te vergewe omdat jy gedink het jy kan geld maak uit die werk van die Heilige Gees. Ek kom agter dat dit ’n ou streek van jou is. Jy probeer heeltyd om ander mense te misbruik. Jou lewe is pikdonker. Ja, dit is galbitter van al die sonde.” Dit het Simon benoud laat uitroep: “Bid asseblief vir my. Vra tog dat die Here niks van hierdie dinge met my sal laat gebeur nie.” Nadat die apostels die Here se woord met groot krag aan die mense bekendgemaak het, het hulle teruggekeer na Jerusalem. Onderweg daarheen het hulle by baie dorpies in Samaria aangedoen en ook daar vir almal die goeie nuus oor Jesus vertel. ’n Rukkie later het ’n engel van die Here na Filippus gekom en vir hom gesê: “Jy moet dadelik vertrek. Vat daardie verlate pad vanaf Jerusalem na Gasa toe. Begin stap in ’n suidelike rigting.” Filippus het dit gedoen. Langs die pad het hy op ’n Etiopiër afgekom. Dit was ’n ontmande amptenaar wat in diens van koningin Kandake van Etiopië was. Hy was haar minister van finansies. Hierdie man was pas in Jerusalem om God te gaan aanbid. Nou was hy weer op pad terug na sy eie land toe. Filippus het van ver af gesien hoe hy op sy wa sit en lees. Hy was besig om hardop uit die profeet Jesaja te lees. Die Heilige Gees sê toe vir Filippus: “Gaan na daardie man toe. Klim by hom op sy wa.” Filippus het vinnig nader gehardloop en gehoor hoe die amptenaar uit die profeet Jesaja sit en lees. “Verskoon tog, Meneer, maar verstaan jy wat jy daar lees?” het hy hom gevra. “Nee, want ek het niemand om vir my te verduidelik wat dit alles beteken nie,” het die Etiopiër geantwoord. “Maar wag, klim hier langs my op die wa. Dalk kan jy my help,” het hy vir Filippus gesê. Filippus sien toe dat hy besig was om die volgende verse uit Jesaja te lees: “Hy is soos ’n skaap na die slagpale toe gevat om geslag te word. Hy is soos ’n lam wat nie ’n geluid maak wanneer hy geskeer word nie; hy het nooit eens sy mond oopgemaak nie. Die mense het hom verneder. Hy is glad nie regverdig verhoor nie. Hulle het hom doodgemaak. Wie sal nou as sy nageslag beskou word?” Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê my, oor wie skryf die profeet hier?” Filippus het dadelik begin om uit hierdie teksgedeelte met die Etiopiër oor Jesus te praat. ’n Rukkie later ry hulle by ’n waterstroom verby. Toe die Etiopiër dit sien, sê hy: “Kyk, hier is water. Hoekom kan ek nie sommer hier gedoop word nie?” Dadelik het hy die wa tot stilstand gebring en saam met Filippus die water ingestap, waar hy deur Filippus gedoop is. *** Toe hulle twee daarna uit die water kom, het die Heilige Gees skielik vir Filippus kom wegvat. Die Etiopiër kon hom nie meer sien nie. Maar hy het glad nie omgegee nie, want hy was verskriklik bly oor wat met hom gebeur het. Sy lewe was nou splinternuut omdat hy die goeie nuus oor Jesus geglo het. Intussen het Filippus in Asdod aangekom. Van daar af het hy van die een plek na die ander die evangelie aan die mense verkondig tot reg in Sesarea. Saulus wou die kerk met alle geweld uitroei. Hy het volgelinge van die Here oral met die dood gedreig. Daarom het hy by die hoëpriester lasbriewe gekry en daarmee na die Joodse aanbiddingsplekke in Damaskus afgesit. Daar wou hy elke gelowige vang op wie hy sy hande kon lê. Sy plan was om elkeen wat in die Here geglo het terug te vat na Jerusalem om daar verhoor te word. Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord. Die ander mense wat saam met Saulus gereis het, was verstom oor wat gebeur het. Hulle kon net die stem hoor, maar hulle het niks gesien nie. Saulus het orent gekom. Toe kom hy agter dat hy niks kan sien nie. Sy reisgenote moes hom lei. Drie dae lank was hy blind. Hy het niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!” “Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.” Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.” Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe. Ek het hom uitgekies vir ’n baie besondere opdrag. Hy gaan nog met baie belangrike mense oor My praat, en ook met die Jode en met mense wat aan ander volke behoort. Daar lê ’n moeilike taak vir hom voor. Saulus gaan nog baie swaarkry omdat hy oor My moet praat. Ek sal dit een van die dae vir hom wys.” Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.” Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop. Toe het hy weer begin eet. Sy liggaamskragte het gou teruggekeer. Daarna het Saulus nog ’n ruk by die gelowiges in Damaskus gebly. Saulus het by die Joodse aanbiddingsplek daar in Damaskus ingestap en vir die mense vertel dat Jesus die Seun van God is. Almal wat hom hoor praat het, was baie verbaas. “Wat gaan nou aan? Is hy nie die man wat in Jerusalem verwoesting gesaai het onder almal wat in daardie Jesus glo nie? Hy het dan juis hierheen gekom om hulle te vang sodat hulle voor die hoëpriester aangekla kan word,” het hulle vir mekaar gesê. Hierdie opmerkings het Saulus nie van stryk gebring nie. Die Here was by hom met sy groot krag. Saulus het die Jode later skoon deurmekaargepraat. Hy het vir hulle gewys dat Jesus regtig die Messias is, die Een vir wie God gestuur het om ons sondes weg te vat. Die Jode het later besluit om Saulus dood te maak, maar gelukkig het hy daarvan te hore gekom. Om seker te maak dat Saulus nie ontsnap nie, het hulle toe die stad se hekke dag en nag laat oppas. Die gelowiges het ’n slim plan gemaak. Een nag het hulle Saulus in ’n groot mandjie gesit en hom oor die stadsmuur laat afsak. Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie. Daarna het Saulus in die openbaar saam met hulle rondgestap. Oral waar hy gekom het, het hy met ander mense oor Jesus gepraat. Kort voor lank het Saulus egter moeilikheid gekry met ’n groep Griekssprekende Jode. Hulle het niks gehou van wat hy gesê het nie. Hulle het toe besluit om hom dood te maak. Toe die gelowiges daarvan te hore kom, het hulle hom dadelik uit die stad weggevat. Hulle is haastig met hom Sesarea toe. Van daar af het Saulus per skip na Tarsus vertrek. Daarna het daar ’n tydperk van vrede in die kerk aangebreek. Dwarsdeur Judea, Galilea en Samaria het mense in groot getalle by die kerk aangesluit. Gelowiges se vertroue in die Here het sterker geword. Hulle almal het ook groot eerbied vir die Here gehad. En hulle het al hoe meer bewus geword van die bystand en troos van die Heilige Gees in hulle lewe. In daardie tyd het Petrus oral by die gelowiges besoek gaan aflê. Tydens een van dié besoeke het hy in ’n dorp met die naam Lidda aangekom waar hy by ’n paar gelowiges gaan bly het. Daar het hy ’n man raakgeloop wat al agt jaar lank verlam was. Sy naam was Eneas. Hy kon nie eens self uit sy bed uit opstaan nie. Petrus het voor hom gaan staan en gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou nou gesond. Staan op! Maak jou bed op sodat almal kan sien dat jy gesond is.” Dadelik het hy uit die bed opgestaan en begin rondstap. Almal wat daar in Lidda en Saron gebly het, het later gesien hoe Eneas in die straat rondloop. Toe het baie mense ook hulle lewens aan die Here gegee. In Joppe, ’n entjie van Lidda af, het ’n volgeling van Jesus gebly met die naam Tabita. (Haar naam beteken “Wildsbokkie”.) Sy het baie omgegee vir ander mense. Waar sy kon, het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen. Juis in daardie tyd toe Petrus in die omgewing was, het Tabita ernstig siek geword. Kort daarna is sy oorlede. Ander gelowiges het haar liggaam gereedgemaak vir die begrafnis. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer uitgelê. Die gelowiges het gehoor dat Petrus daar naby in Lidda was. Hulle het twee mans soontoe gestuur om hom te smeek om gou-gou Joppe toe te kom. Petrus was dadelik bereid om saam met hulle te gaan. In Joppe aangekom, het hy saam met hulle na die bokamer gegaan waar Tabita se liggaam gelê het. ’n Klompie van haar vriendinne, almal weduwees, het daar om haar gestaan. Hulle was baie hartseer. Hulle het vir Petrus van die klere gewys wat sy gemaak het toe sy nog geleef het. Petrus het vir almal gevra om buite te gaan wag. Daarna het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Toe kyk hy na haar en sê vir haar: “Tabita, staan op!” Tabita het dadelik haar oë oopgemaak. Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar hand gevat en haar gehelp om op te staan. Petrus het toe vir die gelowiges en die weduwees wat buite die deur gewag het, binnetoe geroep. Toe hulle in die kamer kom, sien hulle dat Tabita weer lewe. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur Joppe versprei. Dit het gemaak dat baie mense in die Here begin glo het. Petrus het ’n hele ruk by ’n man met die naam Simon daar in Joppe gebly. Simon het leergoedere gemaak en verkoop. In Sesarea het daar ’n man gebly met die naam Kornelius. Hy was die bevelvoerder van die Italiaanse regiment wat daar gestasioneer was. Hy was ’n goeie mens. Kornelius en almal in sy huis het groot respek vir God gehad. Sy hand was altyd oop vir ander mense wat swaargekry het. Hy het ook baie tyd aan gebed afgestaan. Een middag teen drie-uur, terwyl Kornelius besig was om te bid, het hy ’n visioen gesien. ’n Engel van die Here het na hom toe gekom en gesê: “Kornelius!” Kornelius het groot geskrik. Hy het die engel aangestaar en gesê: “Wat is dit, Meneer?” “God het jou gebede gehoor,” het die engel geantwoord. “Al die goeie dinge wat jy vir die armes doen, het Hy ook raakgesien. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.” Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie. Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.” Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?” Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.” Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee. Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?” Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’ “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.” “Weet julle, ek sien nou dat God niemand voortrek nie,” het Petrus geantwoord. “Hy het regtig nie witbroodjies nie! Hy aanvaar almal wat respek vir Hom het en wat doen wat reg is, maak nie saak uit watter volk hulle kom nie. “Ek het goeie nuus vir julle: God het onlangs ’n baie belangrike boodskap na Israel toe gestuur. Dit is ook vir julle bedoel. Die inhoud van hierdie goeie nuus is dat God met ons almal vrede kom maak het. Jesus Christus het hierdie boodskap persoonlik na ons toe gebring. Hy is die Here oor almal. “Dalk het julle ook gehoor wat ’n ruk gelede daar in Judea met Hom gebeur het. Dit het eintlik al in Galilea begin toe Johannes die Doper daar gepreek het dat mense hulle lewens moet verander en hulle moet laat doop. Daarna het Jesus van Nasaret op die toneel verskyn. God het die Heilige Gees oor Hom uitgestort. Jesus het toe begin om mense te help, bose magte uit hulle weg te jaag, en al wat siek mens is, te genees. Hy het dit alles gedoen met behulp van God se groot krag. “Ek het al hierdie dinge met my eie oë sien gebeur: van Galilea af tot in Jerusalem. Toe Jesus in Jerusalem aankom, het die mense Hom doodgemaak. Hulle het Hom aan ’n houtkruis opgehang. Op die derde dag na sy dood het God Hom weer lewendig gemaak. Hy het ook toegelaat dat Jesus vir ’n klompie mense kom wys dat Hy lewe, maar nie vir almal nie. God het vooraf sekere mense uitgesoek aan wie Jesus verskyn het. Ek en die ander apostels is daardie bevoorregte groepie. Ons paar het die voorreg gehad om saam met Jesus te eet en te drink nadat Hy weer lewendig geword het. “Jesus het ons beveel om hierdie nuus oral te gaan oorvertel. Ons moet vir almal gaan sê dat Hy deur God self aangestel is as Regter oor almal op die aarde, oor almal wat lewe en wat reeds dood is. “Dit is nie net ons wat hierdie dinge sê nie. Die profete sê ook dat elkeen wat in Hom glo, se sondes deur God weggevat word.” Petrus was nog besig om te praat, toe kom die Heilige Gees oor almal wat na hom gesit en luister het. Die Joodse gelowiges wat saam met hom na Sesarea gekom het, was baie verbaas daaroor. Hulle kon nie glo dat God sy Heilige Gees oor mense uit ander volke laat kom nie. Tog het hulle dit nou met hulle eie oë gesien, en ook gehoor! Want hierdie mense het dadelik in ongewone tale begin praat en God se Naam grootgemaak. Terwyl dit gebeur, vra Petrus vir die ander gelowiges saam met hom: “Wie sal beswaar maak as hierdie mense gedoop word? Hulle het ook die Heilige Gees ontvang, net soos ons.” Petrus het toe beveel dat almal in Kornelius se huis gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hy nog ’n paar dae by Kornelius oorgebly. Die nuus oor God se werk onder mense wat nie Jode is nie, het soos ’n veldbrand versprei. Die ander apostels en die gelowiges in Judea het ook daarvan te hore gekom. Toe Petrus kort daarna weer in Jerusalem aankom, het sekere gemeentelede wat nog die besnydenis en ander Joodse gebruike streng onderhou het, hom voor stok gekry. Hulle was ongelukkig omdat hy in iemand se huis ingegaan het wat nie besny was nie en boonop saam met hom geëet het. Hulle het dit reguit vir Petrus gesê. Petrus het verduidelik wat gebeur het: “Ek was een middag in Joppe besig om te bid toe ek ’n hemelse gesig sien. Voor my oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor my afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls. Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’ “‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’ “Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’ “Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. “Op daardie oomblik het daar drie mans opgedaag by die huis waar ek gebly het. Hulle is uit Sesarea gestuur om my te kom haal. Die Heilige Gees het toe vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan. Ek en hierdie ses broers by my is toe na Kornelius se huis in Sesarea. Daar het hy ons vertel hoe ’n engel aan hom verskyn het. Die engel het vir hom gesê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat haal vir Petrus. Hy sal vir jou sê hoe jy en jou huisgesin in die regte verhouding met God kan kom.’ “Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het. “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’? “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.” Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.” As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel. Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat. Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword. Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra. Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly. Barnabas was ’n goeie man met ’n sterk geloof in God. Almal kon sien dat die Heilige Gees se groot krag deur hom gewerk het. Hy het besluit om in Antiogië te bly en die gelowiges te help om die goeie nuus daar uit te dra. Baie mense het as gevolg van sy werk begin glo. Na ’n ruk het Barnabas besluit om Saulus te gaan opsoek en hom te oorreed om in Antiogië te kom werk. Hy is na Tarsus toe, waar hy vir Paulus raakgeloop het. Paulus was dadelik bereid om saam met hom in Antiogië te kom werk. Hulle twee het die volgende jaar lank daar saamgewerk. Hulle het die mense geleer wat dit beteken om in Christus te glo. Hier in Antiogië is die volgelinge van Jesus die eerste maal Christene genoem. In dié tyd het ’n paar boodskappers van die Here uit Jerusalem na Antiogië gekom. Een van hulle, ’n man met die naam Agabus, is deur die Heilige Gees gelei om vir hulle te sê dat ’n groot hongersnood binnekort die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook gebeur in die tyd toe Claudius die keiser van die Romeinse Ryk was. Die volgelinge van Jesus in Antiogië het besluit om die gelowiges in Judea te help. Hulle het elke bietjie geld wat hulle kon afknyp vir hulle broers en susters in die Here in Jerusalem opsy gesit. Toe het hulle vir Barnabas en Saulus met al die geld na Jerusalem toe gestuur. Daar het hulle twee dit vir die leiers van die kerk gegee. In daardie tyd het koning Herodes begin om die gelowiges in Jerusalem wreed te vervolg. Hy het selfs vir Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak. Die godsdienstige leiers van die Jode was baie bly daaroor. Dit het Herodes aangespoor om ook vir Petrus te laat vang en in die tronk te gooi. Dit was gedurende die paastyd. Herodes wou doodseker maak dat Petrus nie uit die tronk ontsnap nie. Daarom het hy vier groepe van vier soldate elk aangestel om hom dag en nag op te pas. Sodra die paasfees verby was, wou Herodes vir Petrus in die openbaar verhoor. Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente baie ernstig tot God gebid dat Hy hom moes help. Die nag voordat Petrus voor Herodes sou verskyn, het hy tussen twee wagte aan die slaap geraak. Hy was vasgemaak met twee swaar kettings. Voor die tronk se deur was daar ook ’n paar wagte wat diens gedoen het. Skielik het ’n engel van die Here in die tronk verskyn. Hy het alles rondom hom helder verlig. Petrus het so vas geslaap dat hy dit nie eens agtergekom het nie. Die engel moes hom toe wakker skud. “Staan dadelik op!” het die engel gesê. Die kettings om Petrus se hande het vanself losgegaan. “Sit jou belt aan,” het die engel hom beveel. “En kry ook ’n paar skoene aan jou voete.” Toe Petrus dit alles gedoen het, het die engel vir hom gesê om sy bokleed aan te trek en agter hom aan te kom. Petrus het agter die engel begin aanstap. Hy het gedink dat hy weer besig was om ’n visioen te sien. Intussen het hulle by al die wagte verbygestap tot reg voor die groot ysterhek wat na die stad toe lei. Die hek het vanself oopgegaan. Die engel en Petrus het saam buitetoe gestap. ’n Straatblok van die tronk af het die engel skielik verdwyn. Petrus het toe eers besef dat hy nie besig was om te droom nie. Opgewonde het hy vir homself gesê: “Die Here het regtig ’n engel gestuur om my uit Herodes se hande te kom red. Hy het gesorg dat ek nie voor die Jode verhoor hoef te word nie.” Petrus het vinnig na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus, gestap. ’n Groot groep gelowiges het daar saamgebid. Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is. Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!” Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê. “Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê. “Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê. Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek. Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie. Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly. Herodes het intussen heelwat probleme met die mense van Tirus en Sidon gehad. Afgevaardigdes uit hierdie gebiede het toe bevriend geraak met die hoof van Herodes se huishouding. Sy naam was Blastus. Deur sy toedoen het hulle ’n geleentheid gekry om met Herodes te kom praat en die vrede te probeer herstel. Hulle voortbestaan het van hierdie ontmoeting afgehang. Op die dag waarop hulle afgespreek het, het Herodes sy opwagting gemaak. Met al sy blink klere aan het hy op sy troon gaan sit en almal toegespreek. Hy was skaars klaar of die mense het begin uitroep: “Dis ’n god wat nou met ons praat. Hy is nie ’n gewone mens nie.” Op daardie einste oomblik stuur die Here een van sy engele wat Herodes net daar voor almal inmekaar laat sak het. Dit het gebeur omdat hy God nie geëer het nie. Daarna het hy baie ernstig siek geword en gesterf. Intussen het die gelowiges aangehou om God se woord uit te dra. Die kerk het van krag tot krag gegaan en aanhou groei. Barnabas en Saulus het ook teruggekeer Antiogië toe. Hulle het vir Johannes Markus saam met hulle teruggevat. Die gemeente in Antiogië het ’n klompie knap leiers gehad wat oor die gawe beskik het om God se wil bekend te maak. Barnabas, Simeon (hy is ook “swart Simeon” genoem), Lusius uit Sirene, Manaen, ’n stiefbroer van Herodes en ook Saulus het die gelowiges geleer hoe om tot God se eer te leef. Op ’n dag, terwyl hulle besig was om te vas en ernstig tot die Here te bid, het die Heilige Gees vir hulle kom sê: “Julle moet Barnabas en Saulus nou losmaak van hulle werk in die gemeente. Daar wag ’n nuwe taak op hulle.” Die gelowiges het toe klaar gevas en gebid en daarna het hulle hulle hande op Barnabas en Saulus gesit om hulle aan die Here op te dra. Daarop het die gelowiges van hulle afskeid geneem. Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan. In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis. Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink. Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het. Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie. Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is. Jy is ’n kind van die duiwel. Met al jou skewe leringe probeer jy keer dat God se woord op die regte manier bekendgemaak word. Maar nou het jy jou teen God self vasgeloop. Hy gaan jou van hierdie oomblik af blind laat word. Jy sal ’n ruk lank niks kan sien nie.” Dadelik het alles voor Elimas donker geword. Hy het hulpeloos rondgestrompel en gevra dat iemand hom moet weglei. Omdat die goewerneur gesien het wat gebeur het, het hy in Jesus begin glo. Hy was baie opgewonde oor alles wat Paulus-hulle vir hom oor die Here gesê het. Na hierdie gebeure het Paulus en sy metgeselle met ’n skip na Perge in Pamfilië gereis. Johannes Markus het nie kans gesien om verder saam met hulle te gaan nie. Hy het besluit om terug te gaan Jerusalem toe. Intussen het die res van die geselskap van Perge na die stad Antiogië in Pisidië vertrek. Met hulle aankoms het hulle op die sabbatdag na die Joodse aanbiddingsplek gegaan. Nadat die voorganger in die sinagoge uit die Ou Testament voorgelees het, het die hoofde van die sinagoge vir Paulus en Barnabas gevra: “Vriende, ons sien julle is nuut hier. Het julle nie iets op die hart wat julle vir ons wil vertel nie? Dalk ’n woord om ons moed in te praat?” Paulus het opgestaan en vir almal in die sinagoge beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Geagte volksgenote, ek kom agter dat julle groot respek vir God het. Daarom moet julle nou baie mooi luister. God het ons voorvaders baie jammer gekry. Daarom het Hy hulle as sy volk uitgekies. Toe hulle nog slawe en vreemdelinge in Egipte was, het Hy hulle daar gaan uithaal en van hulle ’n groot volk gemaak. Veertig jaar lank het Hy vir hulle in die woestyn gesorg. Daarna het Hy sewe volke in Kanaän vernietig en hulle grond aan ons voorouers gegee. Gedurende hierdie tyd van sowat 450 jaar het God ’n hele klomp rigters aangestel om sy volk te lei totdat die profeet Samuel op die toneel verskyn het. “In Samuel se tyd wou die volk ’n koning hê om oor hulle te regeer. God het Saul, die seun van Kis uit die stam van Benjamin, as koning aangestel. Hy het 40 jaar lank regeer. Nadat God hom van die toneel verwyder het, het Hy Dawid as die nuwe koning aangewys. God het van hom gesê: ‘Ek het oral gesoek totdat ek Dawid, Isai se seun, gekry het. Hy is iemand so reg na my hart. Hy sal alles doen wat Ek vir hom sê.’ “Uit Dawid se nageslag het God ’n Redder vir Israel laat voortkom. Sy naam is Jesus. Net voor Hom het Johannes die Doper daar in Galilea opgetree. Hy het vir die volk gesê dat hulle hulle sondes moet laat staan en hulle tot God moet bekeer. Diegene wat bereid was om dit te doen, is toe deur hom gedoop. Toe Johannes amper klaar was met sy werk, het hy gesê: ‘Dink julle dat ek die Een, die Gestuurde van God is? Wel, julle is verkeerd. Ek is nie Hy nie. As ek klaar is met my werk, sal hierdie Een op die toneel verskyn. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om die werk van ’n slaaf vir Hom te doen deur sy skoene vir Hom vas te maak nie.’” “Broers, julle is Abraham se nageslag. Julle is die mense wat groot respek vir God het. Weet julle, hierdie boodskap van verlossing is spesiaal vir julle bedoel. “Die inwoners van Jerusalem en al hulle leiers het nie ’n idee gehad wie Jesus regtig is nie. Daarom het hulle Hom doodgemaak. So het hulle die woorde van die profete waar laat word wat julle elke sabbat hier in julle sinagoge lees. Daardie mense het glad nie ’n goeie rede gehad om Jesus dood te maak nie, maar nogtans het hulle dit gedoen. Hulle het by die Romeinse goewerneur, Pilatus, gaan soebat dat hy Hom moes teregstel. “Nadat hierdie mense alles aan die Messias gedoen het wat die profete gesê het hulle sou doen, het hulle sy liggaam van die kruis afgehaal en Hom gaan begrawe. “God het Hom weer lewendig gemaak. Daarna het Jesus dikwels aan sy volgelinge verskyn. Dit is hulle wat van die tyd toe Hy in Galilea gepreek het oral saam met Hom rondgegaan het. Daardie mans het met hulle eie oë gesien dat Hy lewe. Hulle is op hierdie selfde oomblik besig om oral onder die Israeliete te preek.” “Ons het vandag baie goeie nuus vir julle: al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het, het nou waar geword. Ons, hulle kinders, kan nou hoor en sien dat dit waar geword het toe Hy Jesus lewendig gemaak het. Een van die psalms beskryf dit glashelder: ‘Jy is my Seun. Net jy! Vandag verklaar Ek voor almal dat Ek jou Vader is.’ “Toe God Jesus lewendig gemaak het, het Hy dit eens en vir altyd gedoen. Jesus sal nooit weer doodgaan en in die doderyk vergaan nie. So het God alles waar laat word wat Dawid vroeër gesê het: ‘U sal nooit toelaat dat u eie kneg in die doderyk vergaan nie.’ “Dawid het natuurlik nie oor homself gepraat toe hy dit geskryf het nie. Hy is immers lankal dood en begrawe. Van hom het daar niks oorgebly nie. Maar Jesus is deur God lewendig gemaak. Hy sal nooit weer die binnekant van die doderyk met al sy verrotting sien nie. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring. Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde. “Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het: ‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’” Toe die diens in die sinagoge verby was, het die mense vir Paulus gevra om weer die volgende sabbat met hulle oor Jesus te kom praat. Terwyl hulle begin huis toe gaan, het ’n groot groep Jode en ’n klompie persone wat hulle vroeër tot die Joodse geloof bekeer het, agtergebly. Paulus en Barnabas het nog lank met hulle gepraat. Hulle het vir die mense gesê: “Hou altyd net aan God se goedheid vas. Glo in Christus!” Op die volgende sabbat het omtrent die hele stad se inwoners by die sinagoge opgedaag om na die Here se woord te kom luister. Toe die Jode die groot skare sien, het hulle groen van jaloesie geword. Hulle het daar voor almal begin om Paulus te beledig en om lasterlike dinge teen Jesus te sê. Paulus en Barnabas het skerp daarop gereageer: “Ons moes eerste met julle oor God se verlossingsdade kom praat. Maar noudat julle die rug daarop gekeer het, moet julle weet dat julle die ewige lewe gaan misloop. Ons gaan nou die goeie nuus meedeel aan mense wat nie Jode is nie. God het ons beveel om na hulle toe te gaan toe Hy vir ons gesê het: ‘Ek het jou aangestel om ’n lig vir ander volke te wees. Jy moet vir almal tot aan die verste uithoeke van die wêreld gaan vertel dat Ek hulle verlos.’” Toe die mense wat nie Jode was nie hierdie woorde hoor, het hulle begin hande klap en juig. Hulle het God geloof omdat Hy ook vir hulle omgee. Almal van hulle wat deur God uitgesoek is om ’n plek in sy nuwe wêreld te kry het toe tot geloof in Jesus gekom. Daarna het die woord van die Here soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei. Die Joodse owerhede was baie kwaad daaroor. Hulle het agteraf ’n aantal leiersfigure in die stad en ook ’n groep belangrike vroue opgesteek om Paulus en Barnabas met geweld te laat verwyder. Hulle twee is ook kort daarna hardhandig uit die stad weggejaag. Hierdie slegte ervaring het Paulus-hulle nie mismoedig gemaak nie. Hulle het na Ikonium, die volgende stad, toe gegaan om die goeie nuus daar aan die mense te vertel. Hulle was steeds vol van die Heilige Gees se krag en ook vol blydskap. Toe Paulus en Barnabas in Ikonium aankom, het hulle na die Joodse aanbiddingsplek toe gegaan en daar met die mense oor Jesus begin praat. ’n Groot klomp Jode en nie-Jode het toe tot bekering gekom en in Jesus begin glo. Die Jode wat geweier het om in Jesus te glo, was baie ontevrede daaroor. Hulle het begin om die res van die stad se inwoners teen hulle op te steek sodat almal baie agterdogtig teenoor hulle was. Maar Paulus en Barnabas het nog ’n hele ruk daar gepreek. Hulle was nie bang om oor die Here te praat en vir die mense van God se goedheid te vertel nie. Hulle het ook wonderwerke en allerhande buitengewone dinge gedoen. So kon die mense sien dat God regtig deur hulle praat. Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek. Daar het hulle die goeie nuus oor Christus aan die mense gaan vertel. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie omdat hy van sy geboorte af verlam was. Hy het op ’n dag gesit en luister hoe Paulus vir die mense van Jesus vertel. Paulus het na hom gekyk en agtergekom dat die man begin glo dat God sy lewe kan aanraak. Toe het Paulus hard vir hom gesê: “Staan op! Begin loop!” Die man het dadelik orent gespring en begin rondbeweeg. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!” Hulle het gesê Barnabas is Zeus, en dat Paulus Hermes is. Paulus is Hermes genoem omdat hy al die praatwerk gedoen het. Dadelik het die hoofpriester van Zeus se tempel, wat net buite die stad was, ’n aantal bulle en groot blomkranse begin gereed kry. Dit is na die hekke van die stad gebring waar baie mense begin saamdrom het om ’n offer te bring. Toe die Here se twee apostels sien wat besig was om te gebeur, was hulle baie geskok. Hulle het hulle klere van ontsteltenis geskeur en dadelik na die skare toe gehardloop. “Wat vang julle aan?” het hulle bo die geraas uitgeroep. “Ons is doodgewone mense, net soos julle. “Ons het vir julle die goeie nuus oor Christus kom vertel sodat julle kan ophou om hierdie dooie gode van julle te dien. Laat staan al hierdie dinge waarmee julle besig is. Kom na die lewende God toe. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. “In die verlede het God toegelaat dat al die volke maar hulle eie pad loop. Tog het Hy op baie maniere gewys dat Hy vir julle omgee. Hy het gesorg dat julle genoeg reën kry en dat daar groot oeste op julle lande is. Hy het julle skure vol kos gepak en julle hart met vreugde volgemaak.” Paulus en Barnabas het kliphard probeer om die skare onder beheer te kry. Uiteindelik het hulle die mense darem so ver gekry om nie ’n offer aan hulle te bring nie. Intussen het ’n groep Jode van Antiogië en Ikonium in die stad aangekom en die skare teen die twee opgesteek. Kort voor lank was die mense so opgesweep dat hulle Paulus onder die klippe gesteek het. Daarna het hulle hom tot buite die stad gesleep en hom daar vir dood laat lê. ’n Klompie gelowiges het om hom kom staan. Paulus het na ’n ruk weer bygekom en opgestaan. Later het hy die stad ingestap. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe vertrek. In Derbe het Paulus en Barnabas begin om die goeie nuus oor Jesus aan die inwoners te verkondig. Baie van die mense het in Jesus begin glo. Daarna het Paulus en Barnabas weer in Listra, Ikonium en Antiogië ’n draai gaan maak. Hulle het die gelowiges moed ingepraat en hulle aangemoedig om op God se pad te volhard. “Ons gaan nog baie swaarkry voordat ons na God se wêreld toe verhuis,” het hulle ook vir die gelowiges gesê. Hulle het ook ouderlinge in hierdie gemeentes aangestel wat moes sorg dat die gelowiges op die regte pad bly. Paulus en Barnabas het saam met hulle gebid en gevas om hulle aan die Here se sorg op te dra. Van daar af het hulle twee deur Pisidië tot in Pamfilië gereis. In die stad Perge het hulle vir die mense van Jesus vertel. Daarna het hulle Attalië toe gegaan, waar hulle ’n skip na hulle tuisstad, Antiogië, gehaal het. Dit was in Antiogië waar Paulus-hulle vroeër met hulle sendingwerk begin het. Daar is Paulus en Barnabas ’n ruk vantevore deur die gelowiges aan die Here se sorg toevertrou. Nou was hulle op pad terug daarheen nadat hulle alles gedoen het wat God vir hulle gesê het om te doen. Toe hulle in Antiogië aankom, het hulle al die gelowiges bymekaargeroep en aan hulle vertel hoe God hulle gebruik het, en hoe mense wat nie Jode was nie tot geloof gekom het. God het Paulus en Barnabas op ’n wonderlike manier gebruik om die goeie nuus oor Christus met mense uit ander volke te deel. Hulle twee het daarna nog ’n hele ruk by die Christene in Antiogië gebly. In daardie tyd het ’n groepie Jode uit Judea in Antiogië aangekom. Hulle het vir die Christene gesê: “Julle moet julle laat besny. So nie, sal God julle nooit red nie.” Paulus en Barnabas was baie omgekrap daaroor. Hulle het met dié mense begin stry oor hulle skewe sienings. Later het die gemeente besluit om vir Paulus en Barnabas en ’n paar ander mense na Jerusalem te stuur om te hoor wat die apostels en ander kerkleiers daar oor die besnydenis te sê gehad het. Op pad Jerusalem toe het die groep by die gemeentes in Fenisië en Samaria oorgebly. Hulle het vir die gelowiges vertel hoe God ook gewerk het onder mense uit ander volke op wie die Jode neersien. Toe die gelowiges hoor dat daardie mense tot geloof gekom het, was hulle baie bly. Met hulle aankoms in Jerusalem is Paulus-hulle vriendelik deur die gemeentelede ontvang. Die apostels en die ouderlinge was ook daar om hulle te verwelkom. Hulle het toe aan die kerk in Jerusalem verslag gedoen van al die groot dinge wat God deur hulle laat gebeur het. ’n Klompie Fariseërs wat intussen ook tot bekering gekom het, was geskok toe hulle hoor hoe Paulus en Barnabas onder nie-Jode gewerk het. “Julle moet daardie mense dadelik laat besny. Julle moet ook sorg dat hulle die wet van Moses streng onderhou,” het hulle gesê. Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek. By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom. God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het. “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo. “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom? Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.” Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus. Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my. Petrus het nou vir ons verduidelik hoe God lank terug besluit het om mense wat nie aan ons volk behoort nie nou ook deel van sy nuwe volk te maak. Hy het dit gedoen sodat hulle Hom ook kan dien. Dit is presies wat die profete vroeër geskryf het: ‘Ek sal binnekort terugkom, sê die Here. Dan sal Ek Dawid se koninkryk herstel wat nou in puin lê. Ek sal alles herbou wat afgebreek is. Ek sal dit splinternuut maak. In daardie tyd sal ander mense na my nuwe koninkryk toe stroom. Al die volke wat Ek na My toe uitnooi, sal dan na My toe kom. Ek, die Here, sal dit alles doen. Maar julle weet tog al hierdie dinge, want Ek het dit al lank gelede aan julle bekendgemaak.’ “Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê: Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie. “Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie. “Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.” Almal by die vergadering het met Jakobus se voorstel saamgestem. Die apostels, die ouderlinge en die gemeente het toe besluit om twee mans aan te wys om saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te gaan. Hulle name was Judas (sy bynaam was Barsabbas) en Silas, twee van die leiers in die kerk. Hierdie mans moes ’n brief namens die Jerusalemgemeente na Antiogië toe vat. Dit is wat in die brief gestaan het: Van die apostels en die ouderlinge en al die gelowiges hier in Jerusalem. Aan almal daar in die kerk in Antiogië, Sirië en Silisië wat vanuit die nie-Jodedom kom. Ons groet julle as ons broers en susters. Ons het gehoor dat ’n klompie mense uit Jerusalem daar by julle opgedaag het wat dinge vir julle gesê het wat julle omgekrap het. Ons verseker julle dat ons hulle nie na julle toe gestuur het nie. Hulle het sonder ons toestemming na julle toe gegaan. Ons het nou eenparig besluit om twee afgevaardigdes saam met ons twee geliefde broers, Barnabas en Paulus, na julle toe te stuur. Hulle was bereid om hulle lewens op die spel te plaas ter wille van ons Meester, Jesus Christus. Judas en Silas kom ook nou saam met hulle na julle toe. Hulle sal vir julle alles verduidelik wat ons in hierdie brief skryf. Die Heilige Gees en ons het saam besluit dat julle julle nie hoef te laat besny nie. Al wat ons van julle vra, is om die volgende voorskrifte na te kom: Moenie kos eet wat aan die afgode geoffer is nie. Moenie bloed drink of vleis eet van enige dier wat verwurg is nie. Moenie julle skuldig maak aan enige vorm van seksuele losbandigheid nie. As julle hierdie voorskrifte gehoorsaam, doen julle goed. Beste wense. Met die brief in die hand het die mans toe na Antiogië toe teruggekeer. Daar het hulle die hele gemeente bymekaargeroep en die brief voorgelees. Almal was baie bly toe hulle hoor dat hulle nie verplig was om besny te word nie. Judas en Silas, self ook profete wat die Here se wil bekendgemaak het, het toe lank met die gelowiges in Antiogië gepraat. Hulle het by ’n hele paar geleenthede met hulle oor God gepraat en hulle geloof opgebou. Na ’n ruk het Judas besluit om na Jerusalem terug te keer. Hy het van almal afskeid geneem. Nadat die gemeente hom ’n veilige reis toegewens het, het hy vertrek. *** Paulus en Barnabas het in Antiogië agtergebly. Hulle het die gelowiges geleer hoe om te leef soos God dit wil hê. Hulle het ook die goeie nuus oor Jesus onder die inwoners van die stad bekendgemaak. Baie ander gelowiges het presies dieselfde gedoen. Op ’n dag het Barnabas vir Paulus kom sê: “Kom ons gaan lê weer besoek af by die gelowiges in al die stede waar ons vroeër die Woord van die Here verkondig het. Dan kan ons sien hoe dit met hulle gaan.” Barnabas wou vir Johannes Markus saamvat. Maar Paulus was nie bereid om Markus saam te neem nie. Hy het hulle die vorige keer daar by Pamfilië in die steek gelaat. Hulle twee het toe oor Markus aan die stry geraak. Later het hulle so ernstig van mekaar verskil dat hulle besluit het om elkeen sy eie koers te gaan. Barnabas het toe vir Markus gevat en met ’n skip na Siprus vertrek. Op sy beurt het Paulus vir Silas, wat intussen weer na Antiogië toe gekom het, as sy nuwe helper gekies. Die gemeente van Antiogië het vir hulle gebid en hulle aan die goedheid en sorg van die Here opgedra. Daarna het Paulus en Silas na Sirië en Silisië vertrek. Hulle het die gelowiges daar gaan moed inpraat en vir hulle gesê om aan te hou om in God te glo. Paulus het ook weer ’n draai in Derbe en Listra gaan maak. Daar het hy vir Timoteus raakgeloop, ’n Christen met ’n Joodse ma en ’n Griekse pa. Sy ma het saam met hom die Here gedien. Die gelowiges in Listra en Ikonium kon nie uitgepraat raak oor Timoteus se liefde vir die Here nie. Paulus het toe besluit om Timoteus saam met hom te vat om sendingwerk te gaan doen. Maar hy het Timoteus eers besny om seker te maak dat die Jode hom nie van die staanspoor af sou verwerp nie. Baie van hulle het geweet dat hy ’n Griekse pa het. Daarom sou hulle hom nooit toelaat om met hulle in hulle sinagoges oor Jesus te praat as hy nie besny was nie. Daarna het Paulus en Timoteus by ’n paar gemeentes gaan besoek aflê. Oral het hulle vir die gelowiges vertel van die besluite wat die kerkleiers in Jerusalem geneem het oor daardie voorskrifte wat al die gelowiges moes gehoorsaam. Paulus het hierdie besoeke gebruik om die Christene se geloof te versterk. Baie mense het ook tot bekering gekom sodat die kerk oral uitgebrei het. Paulus-hulle het deur die landstreke van Frigië en Galasië gereis. Hulle wou van daar af in ’n westelike rigting na die Romeinse provinsie Asië toe gaan om daar te gaan preek. Die Heilige Gees wou hulle egter nie toelaat om dit te doen nie. Hulle het toe van roete verander en na Misië toe gegaan. Van daar af wou hulle dan na Bitinië reis. Maar weer ’n keer het Jesus hulle deur sy Gees gekeer om soontoe te gaan. Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis. In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!” Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel. Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in. Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly. Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.” Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad. Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.” Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar. Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.” Die hoof van die tronk het toe vir Paulus en Silas na sy huis toe gevat. Almal in die huis moes hoor wat hierdie twee mans oor die Here te sê gehad het. Later het die tronkbewaarder agtergekom dat Paulus en Silas se wonde nog nie skoongemaak is nie. Hy het hulle gou-gou buitetoe gevat om dit te doen. Daarna is hy en sy hele huisgesin ook gedoop. Toe het almal weer in die huis ingegaan en saamgeëet. Die hoof van die tronk en almal in sy huis was baie bly dat hulle nou ook in God geglo het. Intussen, teen dagbreek se kant, het die hooflanddroste ’n boodskap met ’n paar polisiemanne na die tronk toe gestuur. “Laat daardie mans dadelik los!” was hulle opdrag aan die hoof van die tronk. Hy het toe vir Paulus en Silas hierdie nuus gaan meedeel: “Die hooflanddroste het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Gaan in vrede.” “O nee, hulle het ons in die openbaar laat slaan sonder enige verhoor. Boonop het hulle ons, wat wetsgehoorsame Romeinse burgers is, in die tronk gegooi,” het Paulus geantwoord. “Nou wil hulle ons stilletjies loslaat. Nee, ons sit in die tronk totdat hulle ons om verskoning kom vra en ons hier uitlei.” Toe die hooflanddroste hoor wat Paulus gesê het, het hulle hulle yskoud geskrik. Hulle het nie besef dat Paulus en Silas Romeinse burgers was nie. Daarom is hulle haastig na die tronk toe om hulle om verskoning te gaan vra. Hulle het vir Paulus en Silas uit die tronk gelei en hulle mooi gevra om die stad te verlaat. Hulle twee het eers na Lidia se huis toe gegaan om van al die gelowiges afskeid te neem. Paulus en Silas het hulle nuwe broers en susters in die Here aangemoedig om te volhard op die pad van die Here. Toe het hulle vertrek. Paulus en Silas het daarna in ’n suidelike rigting deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom. Daar was ’n Joodse sinagoge. Soos dit sy gewoonte was, het Paulus gereeld soontoe gegaan. Drie sabbatte het hy daar met die Jode uit die Bybel gaan praat. Hy het vir hulle verduidelik dat dit deel van God se plan was dat die Messias moes kom ly en sterf, maar dat Hy op die derde dag na sy dood weer lewendig gemaak is. En hy het bygevoeg: “Hierdie Jesus van wie ek julle vertel, Hy is die Messias. Hy is God se Gestuurde.” Party van die mense het Paulus se prediking geglo. Hulle het daar voor almal by hom en Silas aangesluit. Saam met hulle het baie Grieke wat vroeër die Joodse geloof aanvaar het, asook ’n hele aantal van die vooraanstaande vroue in die stad, tot geloof in Jesus gekom. Toe die ander Jode sien wat gebeur, was hulle baie jaloers. Hulle het agteraf met leeglêers gaan konkel om die inwoners teen Paulus en Silas op te sweep. Spoedig het hierdie mense oral deur die stad amok begin maak terwyl hulle na die Here se twee boodskappers gesoek het. Toe die skare hoor dat hulle in Jason se huis bly, het hulle sy huis bestorm. Hulle wou Paulus en Silas vang en hulle in die openbaar laat verhoor. Dié twee was egter nie tuis nie, net Jason en ’n paar ander gelowiges. Die skare het hulle gevang en voor die hoofde van die stad gesleep. “Hierdie spul is besig om die wêreld om te keer,” het die skare vir die stadsvaders geskree. “En Jason laat toe dat hulle daar in sy huis bly. Hierdie mense oortree die keiser se voorskrifte. Hulle sê dat Jesus die Koning is, nie die keiser nie.” Toe die skare en die leiers van die stad dié aanklagte hoor, was hulle baie kwaad. Hulle het verskriklik met Jason en die ander gelowiges geraas. Maar uiteindelik het hulle hulle laat gaan nadat hulle ’n afkoopsom betaal het. Jason moes ook die versekering gee dat daar nie nog moeilikheid sou wees nie. Daardie nag nog het die gelowiges vir Paulus en Silas by die stad uitgesmokkel. Hulle volgende bestemming was Berea. Daar het hulle na die Joodse sinagoge gegaan en begin preek. Die mense daar was darem ’n bietjie vriendeliker as in Tessalonika. Hulle het opgewonde geluister na alles wat Paulus-hulle vir hulle gesê het. Elke dag het hulle almal lang gesprekke oor die Bybel gevoer. Hulle wou vasstel of alles wat Paulus gesê het wel daarin opgeteken staan. Uiteindelik het baie Jode tot geloof in Jesus gekom; so ook ’n groep van die belangrike mans en vroue in die stad. Intussen het die Jode in Tessalonika gehoor dat Paulus besig was om vir die mense in Berea van God te vertel. Hulle het dadelik soontoe gegaan en met ’n skinderveldtog teen hulle begin. Alte gou het hulle die inwoners van Berea ook teen Paulus en Silas opgesweep. Toe die skare weer met hulle optogte en betogings begin, het die gelowiges besluit om Paulus vinnig uit die stad te kry. ’n Paar van hulle het hom na die kus toe gevat waar hulle ’n boot na Atene gehaal het. Silas en Timoteus het egter in Berea agtergebly. Toe Paulus in Atene aankom, het hy die gelowiges uit Berea huis toe gestuur. Hy het vir hulle gesê om vir Silas en Timoteus te vra om so gou moontlik by hom aan te sluit. Terwyl Paulus in Atene op Silas en Timoteus gewag het, het hy in die stad gaan rondloop. Orals in die stad het hy op die een of ander tempel of afgodsbeeld afgekom. Paulus het toe na die sinagoge toe gegaan. Daar het hy behoorlik onder die Jode en diegene wat hulle tot die Jodedom bekeer het, ingeklim omdat hulle al die heidense praktyke in hulle stad duld. Paulus het ook op die markplein met die mense oor Jesus begin praat. ’n Groep persone wat die filosofiese beskouings van die Epikureërs en die Stoïsyne aangehang het, het met Paulus begin stry. Party van hulle het hom sommer openlik beledig: “Watse nonsens is dit wat hierdie man kwytraak? Hy het nie ’n idee wat hy sê met al die stories wat hy vertel nie!” Ander was egter nuuskierig toe hulle hoor hoe hy oor Jesus en sy opstanding uit die dood praat. “Hier is ’n nuwe godsdiens waarvan ons meer moet hoor,” het hulle vir mekaar gesê. Dié mense het met Paulus gereël om ’n openbare toespraak op die Areopagus te kom hou. “Kom vertel ’n bietjie vir ons van hierdie nuwe godsdiens van jou,” het hulle gesê. “Ons is nuuskierig om meer daaroor te weet. Jy sê sulke snaakse dinge. Waar kom jy daaraan?” Atene was ’n stad vir nuwe dinge. Al wat inwoner en besoeker aan die stad was, wou weet wat die jongste filosofie en godsdiens was; daarom dat die mense so nuuskierig was om te hoor wat Paulus te sê gehad het. Paulus het in die middel van die Areopagus gaan staan en met die mense begin praat. “Geagte mense van Atene, ek kan sien dat julle baie godsdienstig is. Nou die dag toe ek hier aankom, het ek na julle tempels en die beelde van julle gode geloop en kyk. Toe kom ek op ’n altaar af met dié woorde daarop: ‘Aan die God wat niemand ken nie.’ “Ek wil nou met julle praat oor hierdie God wat julle dien sonder dat julle Hom behoorlik ken. Dit is Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy regeer oor alles in die lug bokant julle en oor alles op die grond. Hy bly nie in die een of ander tempel wat deur mense gebou is nie. Daarvoor is Hy heeltemal te groot en te belangrik. Hy het ook nie nodig dat mense Hom van die oggend tot die aand moet bedien met allerhande offers nie. Die God van wie ek julle vertel, is nie van ons mense afhanklik nie. Hy het alles op die aarde gemaak, ook elkeen van julle. Dit is Hy wat sorg dat ons elke dag asemhaal. Dit alles het begin toe Hy lank terug die heel eerste mens gemaak het van wie al die volke afstam wat nou op die aarde woon. God het toe vir elke volk ’n plek gegee om te bly. Hy het ook besluit hoe lank hulle daar sou bly. God wil hê dat al die volke op die aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal.” “Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy dit so wil. Een van julle digters het dit mooi opgesom toe hy gesê het: ‘Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom.’ “As dit dan waar is dat ons almal aan God behoort en dat ons van Hom af kom, is dit mos dom om te dink dat iemand ’n beeld van Hom kan maak. Dit is blote menslike vindingrykheid om afgodsbeelde te maak. “Vir ’n lang tyd het die meeste mense op aarde niks van God af geweet nie. Gelukkig het Hy dit nie teen hulle gehou nie. Maar daardie dae is nou vir goed verby. Nou vertel ek julle die waarheid oor Hom sodat julle en al die ander mense op aarde kan ophou om in sonde te leef. “Want God het besluit dat daar ’n dag sal aanbreek waarop Hy almal op die aarde regverdig gaan oordeel. Hy het ’n baie belangrike Man aangestel om op daardie dag as regter op te tree. Hierdie Man is deur God lewendig gemaak nadat Hy dood was. Almal weet tog al teen hierdie tyd van Hom.” Toe die mense hoor hoe Paulus sê dat Jesus lewendig geword het, het hulle hom hardop uitgelag. Ander was egter nie so skepties nie. “Vertel ons nog meer. Ons wil graag nog hieroor hoor,” het hulle vir Paulus gesê. Hy het egter genoeg van hulle gehad en besluit om liewer te vertrek. Tog het ’n groepie mense in Jesus begin glo en by Paulus aangesluit. Onder hulle was Dionisius die Areopagiet, asook ’n vrou met die naam Damaris en nog ’n paar ander. Kort daarna het Paulus uit Atene vertrek. Die volgende plek op sy reisplan was die stad Korinte. Daar het hy ’n Jood met die naam Akwila teëgekom. Akwila is in Pontus gebore. Hy en sy vrou Priscilla het kort tevore uit Italië padgegee. Dit was net nadat keiser Claudius beveel het dat alle Jode uit Rome weggejaag moes word. Paulus het by hulle in Korinte gaan bly. Al drie van hulle was tentmakers van beroep. Paulus het elke sabbat na die sinagoge gegaan. Daar het hy met die Jode, en ook met ’n klompie Grieke wat die Joodse geloof aanvaar het, oor Jesus gaan praat. Party van hulle het toe tot bekering gekom. Intussen het Silas en Timoteus uit Masedonië na Korinte gekom. Hulle het Paulus raak- geloop waar hy hard besig was om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Die meeste van hulle het Paulus se boodskap verwerp. Teleurgesteld het hy toe opgestaan en daar voor almal die stof uit sy klere geskud. “As julle verlore gaan, is dit net julle eie skuld. Julle bloed is nou op julle eie koppe,” het hy bygevoeg. “Ek het gedoen wat God van my verwag. Ek het vir julle die volle waarheid oor Hom vertel. Nou gaan ek na die heidene toe om met hulle oor Jesus te praat.” Met dié woorde het Paulus omgedraai en uit die sinagoge gestap. Daarna het hy gaan preek in Justus se huis daar reg langs die sinagoge. Justus het vroeër al die Joodse godsdiens aanvaar. Die hoof van die sinagoge in Korinte se naam was Krispus. Toe hy hoor wat Paulus oor Jesus sê, het hy tot bekering gekom. Al die mense in sy huis het saam met hom in Jesus begin glo. Baie ander inwoners van die stad het ook gelowig geword toe hulle Paulus hoor preek. Hulle almal is kort daarna gedoop. Een nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie vir die mense bang wees nie. Hou aan om met hulle oor My te praat. Jy mag nooit stilbly oor die goeie nuus nie. Ek is by jou. Niemand hier in Korinte sal dit waag om jou te slaan of jou in die tronk te gooi nie. Hier is baie mense wat in My glo.” Daarna het Paulus nog vir ’n jaar en ses maande in die stad gebly. Hy het elke kans wat hy gekry het, aangegryp om vir die inwoners van God te vertel. Hy het hulle ook geleer om te doen wat God van hulle verwag. In daardie tyd is Gallio aangestel as die nuwe goewerneur van die Romeinse provinsie Agaje. Die Jode in Korinte wat nie in Jesus geglo het nie, het toe op ’n dag besluit om Paulus by hom te gaan aankla. Hulle het vir Gallio gaan vertel dat Paulus die inwoners van die stad wysmaak dat hulle in God kan glo sonder dat hulle die voorskrifte in die wet van Moses hoef te gehoorsaam. Paulus was ook by toe die Jode hom daar voor Gallio aangekla het. Hy wou nog iets sê om homself te verdedig, maar Gallio het hom nie eens ’n kans gegee nie. “Kyk, as hierdie man iets verkeerds gedoen het, of as hy ’n misdadiger was, sou ek sekerlik na julle geluister het,” het Gallio vir die Jode gesê. “Maar nou mors julle my tyd met julle kleinlike godsdienstige geskille. Ek stel regtig nie belang in wie almal julle godsdienstige wet moet gehoorsaam nie. Julle moet dié probleme maar self oplos.” Daarna het Gallio hulle almal uit sy ampswoning weggejaag. Intussen het die mense vir Sostenes, een van die hoofde van die sinagoge, ook na Gallio toe gebring. Daar het hulle hom rondgestamp en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Gallio wou egter nie in hulle godsdienstige geskille inmeng nie. Paulus het daarna nog ’n ruk lank met sy werk in Korinte voortgegaan. Op ’n dag het hy besluit om ’n paar ander gemeentes te gaan besoek. Hy het van die gelowiges in Korinte afskeid geneem en met ’n skip na Sirië vertrek. Priscilla en Akwila het saam met hom gegaan. Toe Paulus in Kenchreë aankom, het hy al die hare op sy kop afgeskeer. Dit was die bewys dat hy ’n belofte nagekom het wat hy vroeër aan die Here gemaak het. Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie. [20-21] “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom. *** Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly. Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat. Intussen het ’n Christen met die naam Apollos in Efese aangekom. Hy was ’n Jood wat in die stad Aleksandrië in Egipte gebore is. Apollos was ’n goeie spreker. Hy het die Bybel ook goed geken. Tog was sy kennis oor Jesus nog maar gebrekkig. Hy was net met die doop van Johannes die Doper gedoop. Apollos was ’n goeie prediker. Hy het sy bes gedoen om die mense te leer hoe om Jesus na te volg. Apollos het ook in die sinagoge in Efese met die mense oor Jesus gaan praat. Priscilla en Akwila het hom daar raakgeloop. Toe hulle hoor wat hy vir die mense oor Jesus sê, het hulle besef dat hy nog nie alles mooi verstaan nie. Hulle het hom toe na hulle huis genooi. Daar het hulle die evangelie deeglik aan hom verduidelik. Apollos het daarna besluit om na die Romeinse provinsie Agaje te gaan. Die gelowiges in Efese het hom aangemoedig om dit te doen. Hulle het ’n brief geskryf wat hy moes saamvat waarin hulle vra dat die gelowiges in Agaje vir Apollos vriendelik moet ontvang en blyplek aan hom moet verskaf. Toe Apollos in Agaje opdaag, was die Christene wat daar gewoon het baie bly. Hulle kon sien dat God hom na hulle toe laat kom het, want hy het baie vir hulle almal beteken. Apollos het daar voor almal bewys dat die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, verkeerd was. Met hulle slim redenasies was hulle nie opgewasse teen hom nie. Hy het uit die Bybel vir hulle gewys dat Jesus die Messias is. Apollos het ook in Korinte vir die mense van Jesus vertel. Terwyl hy daarmee besig was, het Paulus intussen deur ’n aantal ander gebiede gereis. Toe Paulus in Efese aankom, het hy sowat twaalf volgelinge van Jesus daar raakgeloop. Hy vra toe vir hulle: “Het julle ook die Gees se krag in julle lewens ontvang toe julle tot bekering gekom het?” “Wie is dit? Ons het nog nooit eens van Hom gehoor nie,” vra hulle verbaas. “Hoe is julle dan gedoop? In wie se naam het dit gebeur?” vra Paulus verbaas. “Met die doop van Johannes die Doper,” antwoord hulle. “Johannes het mense gedoop wat bereid was om op te hou met hulle sonde,” sê Paulus toe. “Johannes het ook vir elkeen wat hy gedoop het, gesê dat hulle moes glo in die Een wat na hom op die toneel sou verskyn. Daardie Een is Jesus. Daarom geld Johannes se doop nou nie meer nie.” Toe die gelowiges hoor wat Paulus sê, was hulle vuur en vlam om in die Naam van die Here Jesus gedoop te word. Paulus het dit toe ook gedoen. Nadat hy hulle gedoop het, het hy sy hande op hulle gesit terwyl hy vir hulle bid. [6-7] Dadelik het die groot krag van die Heilige Gees in hulle begin werk. Hulle het ook in ander tale gepraat. Boonop het hulle nou ook oor die vermoë beskik om te profeteer en God se wil bekend te maak. Hulle was omtrent twaalf persone. *** Paulus het daarna by die sinagoge in Efese gaan besoek aflê. Hy het die volgende drie maande gereeld soontoe gegaan. Keer op keer het hy met die mense gaan redeneer. Hy het hard probeer om hulle te oortuig dat hulle slegs in God se nuwe wêreld kon kom as hulle in Jesus glo. Maar baie van hulle het volstrek geweier om in Jesus te glo. Later het hulle met Paulus begin spot en lelike dinge oor Jesus daar voor almal kwytgeraak. Paulus was baie ontevrede. Paulus het hulle verlaat en ’n skoolgebou by ’n man met die naam Tirannus bekom. Daar het hy elke dag saam met die gelowiges bymekaargekom en vir hulle van Jesus vertel. Die volgende twee jaar het Paulus die skool gebruik om die mense te leer waaroor die evangelie presies gaan. Later het omtrent almal in Asië, Jode en Grieke inkluis, geweet wie die Here Jesus is. God het Paulus ook in staat gestel om groot wonderwerke te doen. Paulus het oor soveel krag beskik dat siekes slegs van sy klere op hulle kon neersit, dan het hulle op die plek gesond geword. Selfs bose magte het padgegee uit die lewens van mense wat in aanraking met Paulus se klere was. In daardie tyd was daar baie Jode wat van plek tot plek rondgetrek en duiwels uit mense gedryf het. Die sewe seuns van Skeva, ’n belangrike Joodse priester, was so ’n groep. Hulle het allerhande dinge gedoen om mense van duiwels te probeer bevry. Op ’n dag toe hulle in Efese was, het hulle vir ’n bose gees gesê wat in iemand was: “Ons dryf jou uit in die Naam van daardie Jesus van wie Paulus praat.” Die bose gees het geantwoord: “Kyk, ek weet baie goed wie Jesus is. En ek ken ook vir Paulus. Maar julle spul ken ek van geen kant af nie!” Dadelik het die man in wie die bose mag was, hulle wreedaardig aangeval. Hy was so sterk dat hulle niks teen hom kon doen nie. Hulle klere is van hulle afgeskeur. Op die ou end het hulle daarin geslaag om weg te kom, kaal en bebloed. Gou-gou het almal in Efese gehoor wat met die seuns van Skeva gebeur het. Die inwoners het baie bang geword. Almal het met groot eerbied oor die Here Jesus gepraat. Baie nuwe bekeerlinge het in die openbaar vertel hoe hulle vroeër in sonde geleef en hoe Jesus hulle lewens verander het. ’n Klompie hekse en towenaars het ook tot bekering gekom. Daar voor almal het hulle hulle boeke verbrand waarin al hulle towerformules opgeskryf was. Hierdie boeke was peperduur. Dit was sowat 50 000 silwermuntstukke werd. (Dit was sowat 137 jaar se salaris vir ’n gewone werker!) Die Woord van die Here het in Efese van krag tot krag gegaan. Al hoe meer mense het geglo. Paulus het toe besluit om weg te gaan uit Efese. Hy was van plan om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Daarna wil ek baie graag Rome toe gaan,” het Paulus vir die gelowiges gesê. “Ek móét die stad eenvoudig sien!” Paulus het solank twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit na Masedonië gestuur. Hy self het eers nog ’n rukkie in Asië agtergebly. Op ’n dag het daar toe in die stad ’n betoging oor Paulus se preke uitgebreek. Dit is veroorsaak deur ’n man met die naam Demetrius. Hy was ’n silwersmid wat silwerbeeldjies van die godin Artemis gemaak het. Hy was ook ’n baie suksesvolle sakeman wat aan ’n hele aantal vakmanne werk verskaf het. Demetrius het gesorg dat hulle almal goeie winste maak uit die vervaardiging van hierdie beelde. Op ’n dag het hy hulle bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Vriende, ons maak regtig ’n goeie bestaan uit ons beeldjies. Dit sal egter nie meer lank so aanhou as ons nie iets drasties doen nie. Daardie Paulus, van wie julle ook al gehoor het, is besig om die hele wêreld deurmekaar te maak met sy vreemde leringe. Omtrent elkeen in ons stad, ja, byna die hele Asië, begin nou al glo dat ons handgemaakte gode nie regtig lewe nie. “As dit so aanhou, gaan niemand meer ons beelde koop nie. Die mense is besig om al hulle respek vir ons handewerk te verloor. Ons groot godin Artemis se naam word deur die modder gesleep. Binnekort sal niemand meer haar tempel wil besoek nie. Sy word immers deur ons hele provinsie en oor die hele wêreld heen as ’n magtige godin vereer.” Toe die mense hoor wat Demetrius sê, was hulle baie kwaad. Hulle het begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Hulle geskree het die hele stad gou in oproer gehad. Baie mense het by die stad se amfiteater begin saamdrom. Party van hulle het twee van Paulus se helpers, Gaius en Aristargos, gegryp en soontoe gesleep. Hulle twee was uit Noord-Griekeland afkomstig. Toe Paulus daarvan hoor, wou hy dadelik met die skare gaan praat, maar die ander Christene het hom gekeer. ’n Paar leiersfigure in die provinsie wat op daardie tydstip in Efese was en wat goeie vriende van Paulus was, het hom ook laat weet om onder geen omstandighede na die amfiteater toe te gaan nie. Intussen het die skare in die amfiteater aangehou om slagspreuke te skree. Dit was later ’n hele deurmekaarspul. Almal het geskree net wat hulle wou. Niemand het ’n idee gehad waaroor dit eintlik gaan nie. Onder al die geraas deur het die Jode een van hulle leiers, ’n man met die naam Aleksander, aangesê om die skare toe te spreek. Hy het probeer om hulle stil te maak en aan hulle te verduidelik dat die Jode nie die oorsaak van die oproer was nie. Maar toe die skare agterkom dat hy ’n Jood is, het hulle hom doodgeskree. Met nuwe geesdrif het hulle weer begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Twee ure lank het dit so aangehou. Uiteindelik het die stadsklerk daar opgedaag en die skare tot bedaring gebring. Hy het vir hulle gesê: “Inwoners van Efese, almal weet tog hoe belangrik ons stad is. Ons is immers die beskermers van Artemis se groot tempel en van haar standbeeld wat lank terug uit die hemel geval het. Niemand kan tog daarteen stry nie. Word asseblief nou kalm. Moenie iets onverantwoordeliks aanvang nie. Laat die twee mans los wat julle hierheen gesleep het. Hulle het niks uit Artemis se tempel gesteel nie. Hulle het ook geen lelike woord oor haar gesê nie. Demetrius en sy klompie vakmanne moet maar ’n klag by die hof gaan lê as hulle voel dat iemand hulle te na gekom het. Ons het ’n goeie regstelsel met regters en howe. As julle meer as dit wil hê, moet ons ’n vergadering van al die inwoners van die stad belê waar ons hierdie saak verder kan uitpraat. So nie, moet ons uitmekaargaan. Want netnou kla die Romeinse owerhede ons aan dat ons vandag ’n oproer begin het. Ons het nie eintlik ’n goeie rede waarom ons nou so skree en raas nie.” Met hierdie woorde het die stadsklerk die skare uitmekaar laat gaan. Na hierdie oproer het Paulus al die gelowiges in Efese bymekaar laat kom om van hulle afskeid te neem en na Masedonië vertrek. Daar het hy besoek afgelê by die gelowiges in die verskillende gemeentes. Paulus het vir hulle gesê om gehoorsaam te bly aan die Here. Daarna is hy Griekeland toe, waar hy drie maande lank die goeie nuus oor Jesus aan die mense gaan meedeel het. Sy boodskap het party van die Jode egter so ontstel dat hulle besluit het om hom dood te maak. Dit was kort voordat Paulus van plan was om per skip Sirië toe te vaar. Toe hy van hierdie komplot teen hom hoor, het hy dadelik sy reisplanne verander en deur die provinsie Masedonië gereis. ’n Paar mense het saam met hom gegaan. Daar was Sopater uit die stad Berea (die seun van Pirrus); Aristargos en Sekundus uit die stad Tessalonika; Gaius uit die stad Derbe; Tigikus en Trofimus uit die provinsie Asië, en ook Timoteus. Hulle almal het vooruit gereis en vir ons (dit is nou vir my, Lukas, en ’n paar ander metgeselle) in Troas gaan wag. Ons was op daardie tydstip nog in Filippi vir die viering van die paasfees. Na die paasfees is ons met ’n skip na Troas toe. Daar het ons sewe dae lank saam met Paulus-hulle by die gelowiges oorgebly. In Troas het ons almal op die Sondagaand bymekaargekom om saam te eet en die Here te aanbid. Ons was bymekaar in ’n groot kamer op die derde verdieping van een van die geboue in die stad. Aangesien ons die volgende dag sou vertrek, het Paulus tot lank na middernag aangehou. Daar was genoeg lampe in die vertrek sodat almal hom duidelik kon sien. ’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood. Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor. Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop. Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar. Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie. Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees. Toe ons in Milete aankom, het Paulus iemand met ’n boodskap na die leiers van die gemeente in Efese gestuur en hulle gevra om hom te kom besoek. Toe hulle daar aankom, het hy vir hulle gesê: “Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het. Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie. Ek het die volle waarheid aan julle almal vertel, in die openbaar en ook in julle eie huise. Ek het ook by al die inwoners van julle stad, of hulle nou Jode of Grieke was, gepleit dat hulle hulle tot God moet bekeer deur in ons Here Jesus te glo. “Nou moet ek egter ’n nuwe koers inslaan. Die Heilige Gees wil hê ek moet Jerusalem toe gaan. Ek weet nie wat alles daar op my wag nie. Al wat ek weet, is dat dit nie maklik gaan wees nie. In elke plek waar ek tot nou toe was, het die Heilige Gees my duidelik laat verstaan dat swaarkry en tronkstraf my voorland is. Tog is ek nie daaroor bekommerd nie. My eie veiligheid is in elk geval nie belangrik nie. “Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak. “Dag na dag het ek met julle oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar nou moet ek finaal van julle afskeid neem. Ons sal mekaar nie weer sien nie. Ek troos my egter daaraan dat ek julle die volle waarheid oor God vertel het. Daarom sê ek vandag reguit vir julle: as iemand van julle nou nog nie in God glo nie, is dit regtig nie my skuld nie. Ek het God se hele reddingsplan aan julle meegedeel, elke stukkie daarvan.” “Julle is die leiers in die kerk. Sorg dat julle self altyd op God se pad bly. Onthou: die Heilige Gees het julle aangestel om te sorg dat ander gelowiges ook op God se pad bly stap. Julle moet hulle help en hulle leer om te doen wat Hy vra. Julle is soos skaapwagters wat die Here se skape moet beskerm en versorg. Almal in die kerk behoort aan God. Hy het baie duur vir elkeen betaal. Jesus se bloed het elke gelowige uit die mag van die sonde en die dood losgekoop. “Sodra ek vertrek, sal ’n klomp slegte mense na julle toe kom wat onwaarhede oor Jesus aan julle sal kom vertel. Hulle het net een doel voor oë: om gelowiges deurmekaar te maak met hulle skewe leringe. Hulle is soos wrede wolwe wat daarop uit is om die skape te vang. Loop ook lig vir party gelowiges wat vreemde dinge oor Jesus kwytraak en die kerk probeer verlei om dinge te glo wat ek nie vir julle geleer het nie. “Wees op die uitkyk vir al hierdie onwaarhede. Waarsku die gelowiges daarteen. Onthou: ek het drie jaar lank dag en nag onder julle gewerk en julle baie ernstig gevra om op die regte pad te bly. Daarom mag julle nie toelaat dat die ware evangelie nou deur slegte mense vervals word nie.” “Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle geloof in Hom sterk maak. God sal ook sorg dat julle elkeen ’n plek kry in die nuwe wêreld wat Hy vir al sy kinders gereedmaak. “Toe ek by julle was, het ek nooit vir julle gesê om my ’n salaris te betaal nie. Ek het ook nie by julle kom geld bedel of ooit geskimp dat ek arm is nie. Nee, ek het met my eie twee hande gewerk om aan die lewe te bly. So kon ek vir myself en ook vir al my helpers sorg. Op dié manier wou ek vir julle wys dat julle nie net vir julleself moet lewe nie. Sien ander mense se nood en armoede raak. En help hulle. Onthou: ons Here Jesus het gesê: ‘Dit is beter om te gee as om net te wil ontvang.’” Na hierdie woorde het Paulus op sy knieë gegaan en saam met die ouderlinge gebid. Almal was baie hartseer. Hulle het geweet dat hulle mekaar nie weer sou sien nie. Met trane in hulle oë het hulle vir oulaas van mekaar afskeid geneem. Die ouderlinge het toe saam met Paulus tot by sy skip gestap en hom gegroet. Dit was bitter moeilik om van Efese se ouderlinge afskeid te neem. Nadat ons dit gedoen het, het ons tot by die eiland Kos gevaar. Daar het ons die aand oorgeslaap. Die volgende dag het ons tot in Rodos en van daar af na Patara gevaar. Daar aangekom, het ons ’n boot gehaal wat ons tot in Fenisië geneem het. Van daar af is ons na Siprus toe, waar ons oor Sirië tot in Tirus gevaar het. Die skip het daar anker gegooi. Terwyl ons gewag het dat die skip se vrag afgelaai word, het ons besluit om by die gelowiges in die stad te gaan oorbly. Ons het toe sewe dae by hulle deurgebring. Terwyl ons daar in Tirus was, het die Heilige Gees ’n paar gelowiges gelei om vir Paulus te sê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Later, toe ons skip reg was om te vertrek, het die hele gemeente ons kom groet. Mans, vroue en kinders, almal was daar. Hulle het saam met ons tot by die hawe gestap. Dit was net buitekant die stad. Daar op die strand het ons almal eers neergekniel en saamgebid. Toe het ons mekaar gegroet en op die skip geklim. Ons het van Tirus af na Ptolemaïs gevaar. Daar het ons die gemeente besoek. Hulle het gereël dat ons sommer ook daar by hulle oorslaap. Die volgende dag het ons na Sesarea vertrek, waar ons ’n ruk lank by Filippus gebly het. Hy is een van die sewe mans wat vroeër daar in die Jerusalemgemeente gehelp het om die armes te versorg. Hy het nou in Sesarea gebly, waar hy die goeie nuus oor Jesus verkondig het. Filippus het vier dogters gehad wat nog nie getroud was nie. God het aan hulle die gawe gegee om as profete op te tree en sy wil aan ander mense bekend te maak. Terwyl ons by Filippus gebly het, het ’n profeet uit Judea met die naam Agabus ook daar aangekom. Daar voor almal kom vat hy Paulus se belt en maak dit om sy hande en voete vas. Toe sê hy: “Luister wat die Heilige Gees vir julle sê: ‘Die man aan wie hierdie belt behoort, gaan op presies dieselfde manier in Jerusalem deur die Jode vasgebind word. Dan gaan hulle hom aan die Romeine uitlewer.’” Toe ons dit hoor, was ons baie omgekrap. Ons het Paulus oor en oor gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar hy wou nie na ons luister nie. “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien?” het hy ons gevra. “Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!” Toe ons besef dat ons Paulus nie kon oorreed om weg te bly uit Jerusalem nie, het ons besluit om nie verder met hom daaroor te praat nie. “Ons bid net dat God se wil in jou lewe sal geskied. Mag al sy planne met jou lewe waar word,” het ons vir hom gesê. ’n Paar dae later het ons Jerusalem toe vertrek. ’n Klompie van die gelowiges in Sesarea het saam met ons soontoe gereis. Langs die pad het ons by ’n gelowige met die naam Mnason oorgebly. Hy was al oud. Hy het ons goed ontvang omdat hy goeie vriende was met die gelowiges in Sesarea wat saam met ons gereis het. In Jerusalem was die gelowiges van die stad bly om ons te sien. Die volgende dag het ons en Paulus vir Jakobus gaan kuier. Toe ons by sy huis aankom, was die ander leiers van die gemeente ook daar. Paulus het hulle almal vriendelik gegroet. Hy het dadelik begin om hulle te vertel waar hy oral was en wat hy alles gedoen het. Hy het verduidelik hoe God deur hom gewerk het onder mense wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Toe Jakobus en die ander mense dit hoor, het hulle die Here geprys. Toe Paulus klaar was, sê hulle: “Ons het ook goeie nuus. Hier in Jerusalem het duisende Jode ook in Jesus begin glo. Maar hulle onderhou steeds die wet van Moses.” “Paulus, nou het ons ook ’n bietjie slegte nuus. Dit gaan oor jou. Ons moet jou waarsku. Daar word gesê dat jy oral vir die Jode vertel dat hulle nie meer na die wet van Moses hoef te luister nie. Hulle sê dat jy sê Joodse kinders hoef nie meer besny te word nie. Hulle hoef ook nie meer te leef soos ons godsdienstige wet voorskryf nie. “Nou sit ons met ’n groot probleem. Almal in die stad sal binnekort weet jy is hier. En dan gaan hulle die lewe vir ons bitter moeilik maak. Ons eie gemeentelede gaan ons ook daarvan beskuldig dat ons vriendelik is met iemand wat ’n dwaalleer verkondig. Maar ons het ’n oplossing vir die probleem. In ons gemeente is daar vier mans wat ’n ruk terug ’n belofte aan die Here afgelê het. Nou het die tyd aangebreek dat hulle hulle hare moet afskeer. Dis die bewys dat hulle hulle belofte teenoor God nagekom het. Soos jy weet, moet hulle nou na die tempel toe gaan om hulle daar aan die Here te gaan toewy. Hulle moet ook ’n offer aan Hom bring, wat ’n klompie geld kos. Ons wil hê jy moet saam met hulle na die tempel toe gaan. Betaal die geld vir hulle offers. “Gaan eers na ’n priester toe in die tempel. Hy sal jou elke paar dae met ’n bietjie water besprinkel. Dit vat ’n week. Na hierdie tyd kan jy dan die offers namens daardie vier mans betaal. Dan sal almal sien dat jy nog steeds luister na die wet van Moses. “Toe jy die vorige keer in Jerusalem was, het ons vir jou gesê dat Joodse gebruike slegs vir die Jode geld. Ons staan nog steeds daarby. Gelowiges wat nie Jode is nie, hoef glad nie hierdie voorskrif te gehoorsaam nie. Al wat hulle moet doen, is om te sorg dat hulle nie kos eet wat aan die afgode opgedra is nie. Hulle moet ook nie bloed drink of vleis eet van diere wat verwurg is nie. En laastens moet hulle nie seksuele verhoudings buite die huwelik aangaan nie.” Die volgende dag het Paulus die vier mans saam met hom na die tempel toe gevat. Daar het hy hom saam met hulle aan die Here toegewy. Volgens Joodse voorskrif sou daardie tyd van reiniging sewe dae lank aanhou. Toe die sewe dae amper verby was, het ’n groepie Jode uit Asië op ’n dag vir Paulus in die tempel raakgesien. Hulle was geskok en het dadelik begin skree: “Help! Kom help ons om hierdie man te vang! Dit is hy wat oral sulke verskriklike dinge teen die wet en teen die tempel kwytraak. Hy het nie ’n goeie woord vir ons volk nie. Boonop het ’n klompie Grieke saam met hom hier in die binnehof van die tempel ingekom. Hy maak die tempel onrein. Almal weet mos dat heidene nie hier mag inkom nie.” (Terloops, hierdie Jode het vroeër vir Trofimus, een van Paulus se metgeselle uit Efese, saam met hom sien rondstap. Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingevat het. Maar Paulus het nie so iets gedoen nie.) Hierdie woorde het die skare in rep en roer gehad. Soos een man het hulle op Paulus afgestorm en hom gevang. Die nuus dat Paulus in die tempel gevang is, het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. ’n Groot aantal mense het na die tempel toe gehardloop. Hulle het Paulus hardhandig tot buite die tempel gesleep. Die priesters het die deure van die tempel haastig agter die woedende skare toegesluit omdat hulle bang was vir ’n bakleiery op die tempelterrein. Terwyl die mense Paulus aangerand en hom probeer doodmaak het, is ’n boodskap na die aanvoerder van die Romeinse garnisoen gestuur. Hy het gehoor wat buite die tempel aangaan. Die bevelvoerder het toe dadelik sy offisiere en manskappe bymekaargemaak en na die tempel gehardloop om die skare onder beheer te kry. Toe die skare die Romeinse soldate sien aankom, het hulle opgehou om Paulus te slaan en te skop. Die bevelvoerder het die soldate beveel om hom met twee kettings vas te maak. Toe het hy probeer vasstel wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het. Die skare het egter so geraas en deurmekaar gepraat dat die aanvoerder nie kon verstaan wat aan die gang was nie. Hy het toe vir sy soldate gesê om Paulus na die Romeinse kaserne toe te bring. Die skare was egter so gewelddadig dat die soldate Paulus moes dra. Hulle het agter die soldate aangeloop en geskree: “Weg met hom!” Toe die Romeine by hulle hoofkwartier aankom, vra Paulus vir hulle aanvoerder: “Mag ek asseblief iets sê?” “Hoe praat jy dan Grieks?” vra die bevelvoerder hom. “Ek dog jy is daardie Egiptenaar wat ’n ruk terug hier amok gemaak het en daarna met 4 000 volgelinge die woestyn in is.” “Nee, ek is ’n Jood,” antwoord Paulus. “Ek kom van daardie beroemde stad Tarsus in Silisië af. Mag ek asseblief die skare toespreek?” Die aanvoerder het geknik. Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die skare beduie om stil te bly. Almal het doodstil geword toe hy met hulle in Hebreeus begin praat. “Vriende, luister asseblief mooi na wat ek nou vir julle wil sê. Ek wil graag ook my kant van die saak stel.” Die mense was verbaas toe hulle agterkom dat Paulus Hebreeus praat. ’n Mens kon ’n speld hoor val. Almal het doodstil na hom geluister. “Ek is ook ’n Jood. Ek is in Tarsus in Silisië gebore. Ek het my opleiding in die wet van Moses hier in Jerusalem ontvang. My leermeester was rabbi Gamaliël. Ek is streng volgens al die tradisies en gebruike van ons voorouers grootgemaak. Van jongs af wou ek net doen wat God van my vra. Julle verstaan mos wat ek sê. Julle wil mos ook net doen wat God van julle vra? “Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop. Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.” “Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn. Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’ “‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’ “Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie. “Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’ “Die skerp lig het gemaak dat ek glad nie kon sien toe ek opstaan nie. Die ander mense moes my die stad inlei. “Daar in Damaskus het ’n godsdienstige man gebly wat alles gedoen het wat in die wet van die Here geskryf staan. Sy naam is Ananias. Al die Jode in die stad het net goeie dinge oor hom gesê. Hy het na my toe gekom, sy arm om my geslaan en gesê: ‘Saulus, my broer, jy sal van nou af weer kan sien.’ Op daardie oomblik het my oë oopgegaan. Ek kon Ananias duidelik voor my sien staan. “Ananias het goeie nuus vir my gehad. ‘Weet jy,’ het hy gesê, ‘die God vir wie ons voorouers ook al gedien het, het ’n spesiale taak vir jou. Hy het jou persoonlik uitgekies sodat jy sy reddingsplan vir die wêreld kan ken. Daarom was jy so gelukkig om Jesus te sien en om te hoor hoe Hy met jou praat, want Hy is die Een vir wie God na ons toe gestuur het om ons te red. “‘Noudat jy Hom persoonlik ontmoet het, moet jy vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het. Moenie langer tyd verspil nie. Staan gou op sodat jy gedoop kan word. Al jou sondes sal dan afgewas word omdat jy in die Here glo en sy Naam aanroep.’” “Daarna het ek na Jerusalem teruggekeer. Terwyl ek daar in die tempel besig was om te bid het die Here skielik op ’n bonatuurlike manier aan my verskyn. Ek het Hom met my eie twee oë gesien. Hy het vir my gesê: ‘Gee baie vinnig pad uit Jerusalem! In hierdie stad sal niemand luister na wat jy oor My sê nie.’ “Ek het die Here geantwoord: ‘Maar, Here, hierdie mense ken my. Hulle weet hoe ek vroeër almal wat in U glo in die tronk gegooi en in die sinagoges laat slaan het. Ja, selfs toe Stefanus, u getuie, hier in Jerusalem vermoor is, het ek gestaan en toekyk. Ek was baie bly oor sy dood. Ek het dan selfs die klere opgepas van daardie spul wat hom onder die klippe gesteek het.’ “Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’” Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek. Ander mense het uit verontwaardiging stof in die lug opgegooi, want hulle het gedink Paulus het lasterlike dinge teen God gesê. Die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen het gesien dat dinge handuit begin ruk. Daarom het hy sy soldate beveel om Paulus na die Romeinse kaserne toe terug te vat. Hy het ook vir hulle gesê om Paulus ’n ordentlike drag slae te gee. Die bevelvoerder wou hom op dié manier aan die praat kry sodat hy kon agterkom hoekom die skare hom uitgejou het. Toe die soldate Paulus met toue begin vasmaak sodat hulle hom kon slaan, het hy vir ’n Romeinse kaptein wat daar gestaan het, gevra: “Is dit wat u nou doen wettig? Mag u ’n Romeinse burger lyfstraf gee sonder ’n verhoor?” Die kaptein het dadelik na die bevelvoerder gegaan en vir hom gesê: “U moet mooi dink wat u met hierdie man doen. Weet u, hy is ’n Romeinse burger.” Die bevelvoerder het na Paulus toe gestap en vir hom gevra: “Sê my, is jy regtig ’n Romeinse burger?” “Ja!” het Paulus geantwoord. “Wel, ek is ook ’n Romeinse burger,” het die bevelvoerder gesê. “Ek het dit vir ’n groot bedrag geld gekoop.” “Ek het myne nie gekoop nie. Ek is as ’n Romeinse burger gebore,” het Paulus geantwoord. Daarna het hulle Paulus losgemaak. Die Romeinse bevelvoerder het groot geskrik omdat hy ’n Romeinse burger sonder verhoor aangehou en hom amper lyfstraf gegee het. Die volgende dag het die Romeinse bevelvoerder die hele Joodse Raad bymekaargeroep. Hy wou vasstel waarom die Jode so kwaad vir Paulus was. Daarom het hy Paulus uit die tronk laat haal en hom na die Joodse Raad gevat. Toe Paulus voor die Joodse Raad stelling inneem, het hy hulle ’n paar oomblikke lank aandagtig deurgekyk. Toe sê hy vir hulle: “Broers, my lewe lank dien ek God. Ek het ook nog nooit doelbewus teen sy wil opgetree nie.” Ananias, die hoëpriester, het hom lelik vererg vir Paulus. Hy sê toe vir een van sy helpers wat by Paulus gestaan het om hom op die mond te slaan. Paulus was baie kwaad daaroor. Dadelik het hy vir die hoëpriester gesê: “God sal jou hieroor straf, jou skynheilige! Jy is veronderstel om my volgens die voorskrif van die wet te verhoor. Maar nou tree jy in stryd daarmee op deur te beveel dat ek geslaan word nog voordat ek skuldig bevind is.” Een van die helpers wat by Paulus gestaan het, het geskok vir hom gevra: “Praat jy so met die hoëpriester?” “My broers, ek het nie besef dat ek met die hoëpriester praat nie,” het Paulus geantwoord. “As ek dit geweet het, sou ek nie hierdie dinge gesê het nie. Ek weet immers dat daar in die Bybel geskryf staan: ‘’n Mens mag nie sleg praat van ’n leier van die volk nie.’” Paulus het geweet dat ’n deel van die Joodse Raad Fariseërs was en ’n ander deel Sadduseërs. Hy sê toe vir hulle: “Vriende, weet julle, ek self is ook ’n Fariseër. Ek kom uit ’n lang tradisie van Fariseërs. Dit is juis as gevolg van my geloof as Fariseër dat die dooies eendag weer sal opstaan dat ek nou deur u verhoor word.” Skaars het Paulus hierdie woorde gesê of die Fariseërs en die Sadduseërs wat op die Joodse Raad sitting gehad het, het met mekaar begin stry. Die Sadduseërs het nie aan die opstanding van die dooies geglo nie; ook nie aan die bestaan van engele of geeste nie. Die Fariseërs het wel aan hulle bestaan geglo. Die vergadering het in chaos ontaard. Te midde van hierdie deurmekaarspul het ’n paar Fariseërs opgestaan en uitgeroep: “Hierdie man is onskuldig. Ons vind niks verkeerds met wat hy sê nie. Dit was definitief ’n engel wat daar by Damaskus met hom gepraat het. Of dalk ’n gees van een van ons voorvaders.” Hierdie woorde het die humeure net verder laat opvlam. Die lede van die Joodse Raad het naderhand so met mekaar gestry dat die Romeinse bevelvoerder vir Paulus se lewe gevrees het. Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy soldate beveel om hom tussen die woedende raadslede te gaan uithaal en hom terug te vat na die Romeinse kaserne toe. Daardie nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie moedeloos word nie. Jy was ’n goeie getuie vir My hier in Jerusalem. Jy sal dit ook nog in Rome doen.” Die volgende oggend het ’n sekere groepie Jode besluit om Paulus dood te maak. So vasbeslote was hulle om dit te doen dat hulle ’n belofte voor God afgelê het dat hulle niks sou eet of drink voordat Paulus dood was nie. Meer as 40 mans het hierdie belofte gemaak. Daarna het hulle na die godsdienstige leiers van die Jode toe gegaan en vir hulle gesê: “Ons het ’n plegtige belofte voor God afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Ons plan is: u as Joodse Raad moet die bevelvoerder van die Romeine amptelik versoek om Paulus weer voor u te laat verskyn. Sê vir hom u wil Paulus se saak verder ondersoek. Los die res vir ons. Ons sal sorg dat die man dood is voordat hy ’n voet naby u raadsaal sit.” Paulus se suster se seun het van die komplot teen hom te hore gekom. Hy het dadelik na die Romeinse kaserne gegaan en Paulus daarvan vertel. Paulus het toe een van die kapteins nader geroep en vir hom gesê: “U moet hierdie jongman asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.” Dadelik het die kaptein Paulus se susterskind na die Romeinse bevelvoerder geneem en gesê: “Daardie gevangene, Paulus, het my gevra om hierdie man na u toe te bring. Hy het iets op sy hart waarvan u moet weet.” Die bevelvoerder het die jongman eenkant toe geneem en hom gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil sê?” “Die Jode het besluit om u te vra om Paulus môre weer na die Joodse Raad te laat kom,” het Paulus se susterskind geantwoord. “Hulle maak asof hulle sy saak nog verder wil ondersoek. U moet onder geen omstandighede toelaat dat Paulus soontoe gaan nie. Dit alles is deel van ’n set om hom dood te maak. ’n Groep van oor die 40 mans het ’n belofte afgelê dat hulle niks sal eet of drink voordat hy dood is nie. Hulle is van plan om Paulus op pad na die Joodse Raad voor te lê en dood te maak. Hulle wag net dat u toestemming gee dat hy soontoe kan gaan.” Na hierdie woorde het die bevelvoerder die jongman huis toe laat gaan. “O ja, moet onder geen omstandighede vir iemand anders hiervan vertel nie,” het hy bygevoeg. Die bevelvoerder het twee van sy kapteins nader geroep: “Julle moet dadelik 200 soldate gereed kry om na Sesarea te gaan. Sorg ook dat 70 ruiters en 200 lig gewapende soldate teen nege-uur vanaand reg is om hulle te vergesel. Maak ook seker dat daar ’n paar esels is om Paulus en al sy bagasie te vervoer. Ons moet sorg dat hy veilig by goewerneur Feliks aankom.” Die bevelvoerder het ook ’n brief aan Feliks geskryf wat soos volg gelui het: Van: Claudius Lisias Aan: Feliks, ons hooggeagte goewerneur Ek groet u! Ek het hierdie man onlangs uit die hande van die Jode gered. Dit was nadat hulle hom daar in die tempel gevang het en op die punt was om hom dood te maak. Toe ek hoor dat hy ’n Romeinse burger is, het ek soldate gestuur om hom te red. Ek wou vasstel wat hy verkeerd gedoen het. Daarom het ek hom na hulle hoogste godsdienstige raad toe geneem. Toe kom ek agter dat dit oor die een of ander godsdienstige verskil tussen hom en hulle gaan. Hulle het hom beskuldig dat hy hulle wet oortree. Hy het dus nie iets gedoen wat tronkstraf of die doodstraf verdien nie. Kort daarna is ek in kennis gestel dat die Jode agteraf besluit het om hom dood te maak. Daarom het ek hom ter wille van sy eie veiligheid so gou moontlik na u toe gestuur. Ek het ook sy aanklaers laat weet dat hy nou in u sorg is. Hulle moet hulle saak teen hom voor u kom stel. Groete. Die soldate het Paulus daardie selfde nag nog na Antipatris toe geneem. Die volgende dag het hulle na hulle kaserne in Jerusalem teruggekeer, terwyl die ruiters hom verder vergesel het. Toe die ruiters in Sesarea aankom, het hulle hulle bevelvoerder se brief aan die goewerneur oorhandig. Hulle het Paulus ook aan sy sorg toevertrou. Nadat Feliks die brief deurgelees het, het hy Paulus gevra uit watter Romeinse provinsie hy kom. “Silisië,” het Paulus geantwoord. Daarop het Feliks vir Paulus gesê: “Ek sal jou saak verhoor sodra jou aanklaers hier opdaag.” Hy het sy soldate beveel om Paulus intussen in Herodes se paleis op te sluit. Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met ’n paar Joodse godsdienstige leiers en ’n advokaat met die naam Tertullus in Sesarea aangekom. Hulle het Paulus by die goewerneur kom aankla. Paulus is voor die regbank van Feliks gebring. Tertullus het dadelik begin om die Joodse owerhede se saak teen Paulus te stel: “Hooggeagte Feliks,” het hy gesê, “dis net aan u goeie regering te danke dat ons nou soveel vrede beleef. U hervormings het groot voorspoed vir ons volk gebring. Oral praat ons mense daaroor met groot dankbaarheid teenoor u. Ek wil egter nie u tyd mors nie. Daarom versoek ek u om op u kenmerkend vriendelike manier ’n paar oomblikke na my te luister. “Hierdie man wat voor u staan, is ’n baie groot gevaar vir ons almal. Hy versteur die rus en vrede onder die Jode oor die hele wêreld. Hy is een van die voorbokke in daardie sekte van die Nasareners. Nou die dag het hy selfs probeer om ons tempel te verontreinig. Maar gelukkig het ons hom net betyds gevang. *** As u hom nou self ondervra, sal u agterkom dat al hierdie dinge waarvan ons hom aankla, die reine waarheid is.” “Ja, ja, dit is waar,” het al die ander Joodse afgevaardigdes opgewonde uitgeroep. Die goewerneur het met sy hand vir Paulus beduie dat dit nou sy beurt was om te praat. Paulus het toe gesê: “Ek weet dat u reeds baie jare oor ons regeer. Daarom is ek baie bly dat ek my saak voor u kan stel. Ek het skaars twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom. Ek wou God daar gaan aanbid. Dis al. Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek met een enkele persoon in die tempel gestry of dat ek ’n opstand onder die mense veroorsaak het nie. Ek het ook nie in een van die sinagoges of iewers op straat amok gaan maak nie. Ek sê weer: nie een van die beskuldigings wat hierdie mense teen my ingebring het, kan bewys word nie. “My aanklaers is wel reg op een punt: dat ek ’n lid is van daardie beweging van Christus wat hulle ’n sekte noem. Maar ek moet dadelik bysê dat ek nog steeds dieselfde God dien as wat my voorouers gedien het. Ek glo alles wat in ons Heilige Skrif staan. “En ek glo ook, net soos my voorouers, dat God eendag al die dooies sal laat opstaan, goed en sleg. “Daarom luister ek na wat God sê. Ek probeer ook nie om ander mense aanstoot te gee deur wat ek sê en doen nie. “Ek was ’n hele paar jaar in die buiteland, ver van my mense af. In hierdie tyd het ek ’n groot geldelike bydrae vir hulle ingesamel. Toe ek daarmee klaar was, het ek teruggekom om dit aan hulle te oorhandig. Ek wou ook in die tempel ’n offer aan God bring. Daarom het ek my eers weer in die tempel laat reinig sodat ek na my verblyf in die buiteland weer rein genoeg kon wees om ’n offer te bring. Ek het dit alles sonder ’n groot bohaai gedoen. Toe ek klaar was daarmee het ’n paar Jode uit Asië my in die tempel raakgeloop. Dit is hulle wat toe ’n groot lawaai opgeskop het. Eintlik moes hulle ook hier gewees het om my voor u aan te kla. Daarom moet u maar hierdie mense wat my vandag aankla, vra watter misdaad ek dan gepleeg het. Hulle moet verduidelik waarom ek hier voor u teregstaan. Want ek self het nie ’n idee wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat hulle teen my het, is daardie een sinnetjie wat ek uitgeskree het toe ek nou die dag voor hulle Raad verskyn het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’” Nadat Feliks na Paulus se verdediging geluister het, het hy besluit om die saak uit te stel. Hy het meer van die Christendom af geweet as wat hy wou voorgee. Maar hy het vir tyd gespeel omdat hy nie die Jode se goedgesindheid wou verloor nie. Daarom het hy vir hulle gesê: “Wanneer Lisias, die Romeinse bevelvoerder in Jerusalem, hier opdaag en ek ook na sy kant van die saak geluister het, sal ek ’n uitspraak in hierdie saak lewer.” Daarna het Feliks een van sy kapteins beveel om Paulus weer te laat opsluit. Hy het Paulus nou egter heelwat meer vryhede toegelaat en sy vriende kon hom besoek. ’n Paar dae later het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal. Hulle wou hoor wat hy alles oor sy geloof in Jesus Christus te sê gehad het. Paulus het die geleentheid gebruik om met hulle te praat oor die volgende belangrike sake: hoe om jou saak met God reg te maak; hoe om sondige begeertes onder beheer te kry, en wat alles gaan gebeur op die laaste dag wanneer God terugkom om te oordeel. Sy woorde het Feliks en Drusilla baie benoud gemaak. Daarom het Feliks hom gou na sy sel toe teruggestuur met die woorde: “Dit is vir eers genoeg. Later, as ek tyd het, sal ek jou weer laat haal. Dan kan ons verder gesels.” Feliks het in die stilligheid gehoop dat Paulus hom omkoopgeld sou aanbied om hom vry te laat. Daarom het hy Paulus daarna gereeld laat haal om met hom te kom praat. So het twee jaar verbygegaan. Feliks is toe deur Porcius Festus as die nuwe Romeinse goewerneur opgevolg. As ’n laaste guns aan die Jode het Feliks egter vir Paulus in gevangenskap in Sesarea agtergelaat. Drie dae na sy aankoms in Sesarea is Festus na Jerusalem toe. Die hoëpriester en al die godsdienstige leiers van die Jode het hierdie kans aangegryp. Hulle het dadelik vir Festus van Paulus vertel en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Hulle het ook vir Festus gevra of hy hulle nie ’n guns wou bewys deur Paulus Jerusalem toe te stuur om deur hulle verhoor te word nie. Hulle wou egter vir Paulus langs die pad voorlê en doodmaak. Festus het egter geweier. “Die man word in Sesarea aangehou. En so sal dit bly,” het hy geantwoord. Hy het wel vir hulle gesê dat hy self binne ’n paar dae na Sesarea sou terugkeer. “Julle kan, as julle wil, julle bekwaamste regsgeleerdes saam met my stuur,” het Festus gesê. “Hulle kan die man dan kom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.” Sowat agt of nege dae later het Festus na Sesarea teruggekeer. Die dag na sy aankoms het hy sy plek in die regsaal ingeneem en beveel dat Paulus voor hom moes verskyn. Soos een man het die Jode wat uit Jerusalem gekom het vorentoe gehardloop en om Paulus kom staan. Hulle het dadelik met allerhande beskuldigings teen hom losgetrek. Natuurlik kon hulle niks daarvan bewys nie. Paulus se verdediging was kort en kragtig: “Ek het niks verkeerds gedoen teen die wet van die Jode, of teen die tempel, of teen die keiser nie.” Festus wou egter in die Jode se goeie boekies bly. Daarom het hy vir Paulus gevra: “Sien jy kans om Jerusalem toe te gaan sodat ek jou daar kan verhoor?” “Ek staan op hierdie oomblik tereg voor die regbank van die Romeinse keiser,” het Paulus geantwoord. “Dit is my reg as ’n Romeinse burger. Ek het nie ’n saak met die Jode nie. Ek het niks verkeerds teen hulle gedoen nie. U weet dit baie goed. As ek ’n oortreding begaan het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om my straf te dra. Dan kan u my sommer hier en nou teregstel. Maar as die Jode se beskuldigings teen my nie bewys kan word nie, het niemand die reg om my aan hulle uit te lewer om hulle ’n guns te probeer bewys nie. Nou beroep ek my op my reg om deur die keiser self verhoor te word.” Festus het ’n paar oomblikke met sy raadgewers oor Paulus se woorde beraadslaag. Toe het hy kort en kragtig sy uitspraak gegee: “Op die keiser het jy jou beroep. Na die keiser toe sal jy gaan!” ’n Rukkie later het koning Agrippa en sy suster Bernice Sesarea besoek om Festus amptelik te kom verwelkom. Na ’n paar dae het Festus vir Agrippa van die saak teen Paulus vertel. “My voorganger, Feliks, het ’n gevangene hier in die tronk agtergelaat,” het hy gesê. “Toe ek in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode hierdie man van baie dinge beskuldig en gevra dat ek hom skuldig moes bevind. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die manier is waarop ons Romeine te werk gaan nie. Ons lewer mense nie aan ander uit om hulle ’n guns te bewys nie. Ons maak eers seker dat die aangeklaagde ’n behoorlike kans gehad het om hom voor sy aanklaers te verdedig. “Toe die Jode later Sesarea toe kom, het ek dadelik aan hierdie saak aandag gegee. Die volgende dag nog het ek beveel dat die man oor wie dit alles gaan voor my gebring moes word. Toe hy inkom, het sy aanklaers met hulle aanklagte teen hom losgetrek. Ek was verbaas om te hoor dat hy nie van ’n misdaad beskuldig is nie. Dit het toe oor ’n klomp godsdienstige verskille tussen hulle en hom gegaan, en oor ’n dooie man - sy naam is Jesus. Paulus beweer dat hy nog leef. “Omdat ek nie mooi geweet het wat om te doen nie, het ek die gevangene gevra of hy Jerusalem toe wou gaan om daar verhoor te word. Maar hy het geweier. Hy het hom toe beroep op sy reg om deur die keiser verhoor te word. Daarom het ek beveel dat hy in die tronk moet bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.” Agrippa sê toe vir Festus: “Ek sou hom baie graag wou ontmoet.” Festus sê toe: “Ek reël dat u hom sommer môre nog te sien kry.” Die volgende dag het Agrippa en Bernice met prag en praal in die amptelike saal ingekom waar hulle Paulus te woord sou staan. Almal wat iets of iemand in Sesarea was, van hooggeplaaste militêre offisiere tot by vooraanstaande sakemense, het ook opgedaag vir die geleentheid. Festus het die teken aan sy soldate gegee om Paulus te laat inkom. “Koning Agrippa en ander geëerde gaste,” het Festus gesê, “hier is die man oor wie dit alles gaan. ’n Groot aantal Jode het my eers daar in Jerusalem, en later ook hier, gevra om hom dood te maak. Hulle voel baie sterk daaroor dat hy nie verdien om langer te leef nie. Ek het sy saak ondersoek en vasgestel dat hy niks gedoen het wat die doodstraf regverdig nie. Aangesien hy hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom Rome toe te stuur. Maar ek weet nie wat ek aan my heer, die keiser, oor hierdie man moet skryf nie, want hy het niks verkeerds gedoen nie. “Daarom laat ek hom nou voor u almal verskyn. En veral ook voor u, koning Agrippa. U moet my help om die een of ander klag teen hom te formuleer. Dit sal darem nie goed lyk as ons ’n gevangene die hele ent pad Rome toe stuur sonder ’n behoorlike aanklag teen hom nie.” Agrippa het toe vir Paulus gesê: “Stel nou jou kant van die saak.” Paulus het met ’n handgebaar gewys dat hy gereed was om te praat. Toe sê hy: “Geagte koning Agrippa, ek is baie bly dat ek juis voor u mag antwoord op die aanklagte wat die Jode teen my ingebring het. U ken immers al die Joodse tradisies. En natuurlik weet u ook van al ons godsdienstige verskille. “Van my kinderdae af het ek tussen my eie mense in Jerusalem gebly. Hulle almal ken my. As een van hulle die moed sou gehad het om vandag hier op te staan, sou hulle vir u kon sê dat ek ’n lid was van die Fariseërs, die strengste godsdienstige groep binne ons godsdiens. Die ironie van dit alles is dat ek nou aangekla word omdat ek al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het met my hele lewe glo. Ek glo dieselfde dinge as dié waaraan al die Israeliete nog die hele tyd vasgehou het. Hulle het ook geglo dat God sal doen wat Hy belowe het. “Geagte koning Agrippa, ek kan nie begryp hoekom ek nou deur die Jode aangekla word omdat ek God se Woord glo nie. Ek glo met my hele lewe dat God in staat is om die dooies weer lewendig te maak. Waarom is dit dan vir julle Jode so moeilik om te glo dat God dooies lewendig kan maak? En u, koning Agrippa, dink u ook dis onmoontlik? “In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het. Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie. Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.” “Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn. Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son. Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’ “‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. “Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Maar staan nou dadelik op, want Ek het ’n baie spesiale taak vir jou. Ek het aan jou verskyn sodat jy van nou af my dienskneg kan wees. “‘Jy moet vir ander mense gaan vertel wat jy vandag gesien het. Jy moet ook gaan praat oor dit wat Ek nog vir jou sal sê wanneer Ek later weer aan jou verskyn. Ek het jou vrygemaak. “‘Nou moet jy teruggaan na jou volk en na ander mense buite Israel en hulle oë ook gaan oopmaak. Jy moet vir elkeen wat nog in die donker leef, gaan vertel van die lig. Ruk hulle uit die kloue van Satan sodat hulle God se goedheid kan ken. Sê vir hulle om in My te glo. “‘Dan word al hulle sondes vergewe. Dan word hulle ook deel van die mense wat aan My behoort. Gaan sê dit alles vir hulle.’” “Geagte koning Agrippa, niemand kan aan so ’n visioen ongehoorsaam wees nie. Ek het vir die mense in Damaskus gaan vertel om tot bekering te kom. Ek het vir hulle gesê om hulle lewe aan God te gee en om so te leef dat almal kan sien dat hulle in Hom glo. Daarna het ek presies dieselfde vir die mense in Jerusalem en in Judea gaan sê. Ek het ook na mense gegaan wat nie tot die Joodse volk behoort nie en vir hulle van Jesus vertel. “As gevolg van my prediking oor die hele wêreld was die Jode in Jerusalem later baie kwaad vir my. Toe ek op ’n keer in die tempel kom, het hulle my gevang en my amper doodgemaak. Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie. Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.” Paulus se woorde het Festus baie omgekrap. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, het hy skielik geskree: “Jy is mal, Paulus! Jou groot geleerdheid is besig om jou van jou kop af te dryf.” “Met alle respek, geagte Festus,” het Paulus geantwoord, “ek is glad nie mal nie. Dit wat ek sê, is die reine waarheid. Enige mens wat mooi luister na wat ek sê, kan dit verstaan. Vra maar vir koning Agrippa. Hy weet ook van al die dinge waaroor ek praat. En hy begryp dit ook. Niks van hierdie dinge het op die een of ander verlate plekkie afgespeel nie.” Paulus vra toe vinnig vir Agrippa: “En wat van u, koning Agrippa, glo u wat die profete sê? Wag, u hoef nie eens te antwoord nie. Ek weet dat u glo.” “As jy so aanhou, maak jy my sommer netnou ’n Christen,” het Agrippa geantwoord. “Ek bid dat u en al die ander mense wat vandag na my luister Christene sal word,” sê Paulus toe. “Of dit nou dadelik gebeur of eers ’n rukkie later, my gebed is dat u net soos ek sal begin glo. O ja, natuurlik bid ek dat u sal glo sonder al die boeie wat ek vandag aanhet.” Na hierdie woorde het die koning en die Romeinse goewerneur, saam met Bernice en al die hooggeplaastes, opgestaan en die saal verlaat. Terwyl hulle uitstap, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie. Hy verdien nie die dood nie. Hy hoort nie eens in ’n tronk nie.” Agrippa het daarom vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie beroep het op sy reg om voor die keiser te verskyn nie.” Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek. Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind. Van daar af het ons al langs die kus van Silisië en Pamfilië af tot by Mira in Lisië gevaar. In Mira het ons op ’n ander skip geklim wat op pad was Italië toe. As gevolg van stormweer op die see het ons van daar af baie stadig gevaar. Uiteindelik het ons met ’n groot gesukkel tot regoor Knidus gekom. As gevolg van die sterk stormwind moes ons van roete verander. Ons het aan die beskutte kant van die eiland Kreta by Salmone verbygevaar. Toe ons uiteindelik daar verby is, het ons by ’n plek met die naam Mooi Hawens aangekom. Dit is naby die stad Lasea. As gevolg van die sterk stormwinde op die see het ons baie tyd verloor. Boonop was die winter net om die draai. Die vastyd wat net voor die Joodse Versoendag plaasgevind en wat altyd in die herfs geval het, was ook al verby. Van dan af was dit baie gevaarlik om op die see te vaar. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.” Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter. Die volgende dag het ’n ligte suidewind begin waai. Dadelik is die skip se anker gelig, omdat die bemanning gedink het dat die weer nou reg was om veilig tot in Feniks te vaar. Ons was egter skaars by Kreta verby of ons loop ons in daardie gevreesde noordoostewind vas waarvoor al die seevaarders so bang is. Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur. Ons kon dit glad nie op koers hou nie. Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af. Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word. Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie. Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’ “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.” Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek. ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf. Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.” Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet. Vol moed het almal sy voorbeeld gevolg en ook begin eet. Nadat al 276 mense op die skip geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi. Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik. Toe ons almal die veiligheid van die strand bereik het, het ons agtergekom dat ons op die eiland Malta was. Die mense wat daar gebly het, het ons met oop arms ontvang. Hulle het dadelik ’n groot vuur aangesteek omdat hulle gesien het dat ons baie koud kry. Boonop was ons almal papnat omdat dit intussen ook begin reën het. Almal het hout vir die groot vuur bymekaargemaak. Paulus het ook hand bygesit. Toe hy ’n bondel hout op die vuur kom neersit, het ’n giftige slang skielik tussen die hout uitgekom en hom aan sy hand gepik. Die inwoners van die eiland het die slang aan Paulus se hand sien hang en vir mekaar gesê: “Hierdie man is sekerlik ’n moordenaar. Hy was net gelukkig om lewendig uit die storm op die see te kom. Maar nou het die gode hom uiteindelik ingehaal. Nou betaal hulle hom terug vir sy misdaad.” Paulus het die gedierte afgeskud en dit in die vuur laat val. Hy het niks oorgekom nie. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou begin opswel van die slangbyt en doodgaan. Maar hy was springlewendig. Na ’n ruk het die mense van mening verander en vir mekaar gesê dat hy die een of ander god moet wees. Die hoofman van die eiland het ’n stuk grond daar naby besit. Sy naam was Publius. Hy het ons na sy huis genooi. Daar het ons die volgende drie dae as sy gaste deurgebring. Publius se pa was baie siek. Hy het ’n hoë koors gehad en ’n maagkwaal. Paulus het na sy kamer toe gegaan. Daar het hy sy hande op hom geplaas en vir hom gebid. Die man het dadelik gesond geword. Die nuus van die genesing het soos ’n veldbrand oor die eiland versprei. Kort voor lank het almal hulle siekes na Paulus toe gebring. Hy het hulle almal gesond gemaak. Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis. Na drie maande op Malta het ons Italië toe vertrek aan boord van ’n skip uit Aleksandrië, wat daar oorwinter het. Die skip se naam was die Dioskuri. Ons het tot in Sirakuse gevaar en drie dae daar oorgebly. Van daar af het ons tot in Regium gevaar. Twee dae later het ons met behulp van ’n sterk suidewind in die hawe van Puteoli aangekom. Daar het ons ’n groep Christene raakgeloop wat ons genooi het om by hulle oor te bly. Nadat ons sewe dae by hulle deurgebring het, is ons Rome toe. Die gelowiges in Rome het gehoor dat ons op pad was. Sommige van hulle het ons langs die pad kom ontmoet. Een groep het ons reeds by die Appiusmark ingewag, en ’n ander groep by die Drie Herberge. Paulus was so bly dat hy daar voor almal vir God dankie gesê het. Nou het hy moed gehad vir dit wat voorlê. In Rome is Paulus toegelaat om op sy eie in ’n huis te bly. ’n Romeinse soldaat het hom daar opgepas. Drie dae na sy aankoms het Paulus al die Joodse leiers van die stad na sy huis genooi. Toe hulle almal in die huis bymekaar was, het hy vir hulle gesê: “Vriende, ek het niks verkeerds gedoen teen ons volk of teen ons godsdienstige tradisies nie. Tog is ek in Jerusalem gevang en aan die Romeine uitgelewer. Die Romeinse owerhede het die aanklagte teen my behoorlik ondersoek. Hulle het toe vasgestel dat ek niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie. Hulle wou my toe loslaat. Party Jode het egter so sterk daarteen beswaar gemaak dat ek verplig was om my op die keiser te beroep. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is nie van plan om my volk by die keiser in die moeilikheid te bring nie. Daarom het ek julle vandag hierheen laat kom. Ek wil hê julle moet weet dat ek steeds ’n lojale lid van my volk is. Ek is egter ’n gevangene omdat ek glo in Hom op wie se koms ons voorouers al die jare gewag het.” Die Jode het daarop vir Paulus gesê: “Niemand uit Judea het ons laat weet dat jy Rome toe kom nie. Hier het ook niemand opgedaag wat iets slegs oor jou vertel het nie. Ons sou egter graag wou hoor wat jy te sê het oor daardie nuwe sekte wat in Jesus glo. Die mense hier sê allerhande lelike dinge oor hulle.” Hulle het besluit om ’n paar dae later weer bymekaar te kom. Op dié dag het ’n groot groep Jode in die gastekamer in Paulus se huis bymekaargekom. Daar het Paulus van vroegoggend tot laataand met hulle oor God se koninkryk gepraat. Hy het hulle probeer oorreed om in Jesus te glo. Hy het ook vir hulle gewys dat Moses en die profete reeds oor Jesus Christus geskryf het. Party van die Jode is deur Paulus se woorde oortuig, maar ander het geweier om te glo wat hy sê. Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het: ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind. Hierdie mense se harte is kliphard. Hulle ore is doof. Hulle oë is heeltemal toe. Daarom kan hulle niks sien of hoor nie. Hulle verstaan nie wat Ek besig is om te doen nie; daarom kom hulle nie terug na My toe sodat Ek hulle gesond kan maak nie.’ “Julle het julle kans verspeel,” het Paulus bygevoeg. “Ek sê vir julle dat God se reddingsboodskap van nou af aan mense verkondig gaan word wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Hulle sal wel na God luister!” *** Daarna het Paulus twee jaar lank in sy gehuurde huis in Rome gebly. Hy het almal wat hom kom besoek het met oop arms ontvang. Paulus het met al sy gaste oor God se nuwe wêreld gepraat. Hy het gesê dat Jesus die Messias, die Gestuurde van God is. Hy regeer nou as Here oor alles en almal. Niemand het Paulus verbied om oor Jesus te praat nie. Van Paulus. Ek dien Christus Jesus. Hy het my aangestel as apostel. Dit is my taak om God se goeie nuus oral bekend te maak. Hierdie goeie nuus is al lankal deur God se boodskappers in die Bybel neergeskryf. Dit handel oor God se Seun, Jesus Christus. Hy is ons Here. Hy kom uit die nageslag van Dawid. Toe Jesus na sy kruisiging uit die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee. Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel en op die aarde. Jesus was baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy apostel. Ek moet vir mense uit alle volke van Hom vertel. Ek sê vir hulle om in Hom te glo en om te doen wat Hy sê. Julle tel onder die gelukkiges wat hierdie goeie nuus glo. Christus het julle ook geroep om in Hom te glo. Ek skryf hierdie brief aan julle almal in Rome. God het julle baie lief. Hy het julle eenkant gesit vir Homself sodat julle Hom voltyds kan dien. Die goedheid en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus is by julle. Ek kan nie anders as om deur Jesus Christus vir my God dankie te sê dat mense oor die hele wêreld van julle geloof praat nie. En God, wat ek met my hele lewe dien omdat ek die goeie nuus oor sy Seun bekendmaak, weet dat julle nooit uit my gedagtes is nie. Elke keer as ek bid, vra ek Hom of Hy tog nie ’n plan kan maak sodat ek binnekort na julle toe kan kom nie. Ek wil julle baie graag persoonlik ontmoet. Ek het die wonderlikste geestelike geskenke uit God se hand ontvang waarin ek julle wil laat deel. Dit sal julle geloof sterker maak. Ek wil graag ook iets van julle ontvang: julle groot geloof kan my aanspoor om nog harder vir die Here te werk. So kan ons mekaar help om die Here nog beter te dien. Weet julle hoeveel keer ek al probeer het om na julle toe te kom? Tot nou toe het daar elke keer iets voorgeval. Maar hou moed, ek is op pad. Ek beplan om ook daar in Rome vir julle en vir ander mense van Christus te vertel. Op hierdie manier sal daar ook by julle ’n ryk oes vir die Here ingesamel word. Dit is my plig om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode, geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak. Daarom wil ek bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome moet ek die goeie nuus laat weerklink. Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode. God se goedheid word sigbaar oral waar mense met hulle hele lewe op Hom vertrou. Daar staan immers in die Bybel geskryf: “Almal wat deur God van hulle sondes vrygespreek is omdat hulle glo, sal die ware lewe ken.” Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens. Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas. Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie. Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte. Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig. Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele. God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid. En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word. God het al hierdie sondaars oorgegee aan hulle siek begeertes. Daarom het vroue begin om die normale seksuele gemeenskap met mans te verruil vir abnormale seksuele gemeenskap met ander vroue. Die mans het presies dieselfde gedoen. Hulle het ook hulle normale seksuele gemeenskap met vroue laat staan omdat hulle vreemde seksuele gemeenskap met ander mans wou hê. As gevolg daarvan het hulle allerhande skandelike dade met mekaar begin pleeg. Maar hulle het ’n baie duur prys daarvoor betaal. God het hulle gestraf deur hulle aan hulleself oor te laat. Omdat hierdie mense glad nie daarin belangstel om God op die regte manier te ken nie, het Hy toegelaat dat hulle kan dink net wat hulle wil en doen wat hulle wil. Daarom is hulle hele lewe nou een groot deurmekaarspul. Hulle neem deel aan elke denkbare vorm van goddeloosheid. Hierdie mense is propvol boosheid, seksuele wellus, geldgierigheid en slegtheid. Hulle harte loop oor van slegte dinge soos jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadpratery en ’n geskinder. Hulle steek mekaar in die rug en hulle haat God. Boonop dink hulle heeltemal te veel van hulleself. Hulle praat groot. Elke dag dink hulle ’n spul nuwe sondes uit. Hulle haat hulle ouers. Hulle is ongehoorsaam en dom. Ja, hierdie heidene is ’n spul gevoellose wesens wat net mooi niks vir ander mense omgee nie. Natuurlik weet hulle hoe God wil hê hulle moet leef. En hulle weet ook dat die doderyk op hulle wag. Tog hou hulle aan met al hulle booshede. En asof dit nie erg genoeg is nie, moedig hulle ander mense aan om hulle slegte voorbeeld te volg. Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie. As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan. Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê. Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld. Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is. Op die laaste dag wanneer God sy finale uitspraak gee oor die diepste geheime in ons elkeen se lewe, sal almal kan sien dat hierdie mense ook gedoen het wat Hy vra. Hierdie goeie nuus wat ek met julle deel, het ek van Christus Jesus ontvang. Jy spog so graag oor jou Joodse afkoms en jou wet. Jy vertel vir almal dat God jou God is en dat jy sy wil ken. Boonop maak jy asof jy presies weet wat reg en verkeerd is omdat jy die wet op die punte van jou vingers ken. Omdat jy so danig belangrik is in jou eie oë, het jy jouself aangestel om mense wat nog in die donker rondlê na die lig toe te lei. Jy dink dat jy net die regte een is om die blindes na God toe te bring. Jy beskou jouself as die groot leermeester van almal wat niks weet nie, as die onderwyser van almal wat nog maar kinders in die geloof is. Jy dink dat jy al die kennis en waarheid in pag het. Maar ek wil jou ’n vraag vra. Jy wat so vinnig is om ander mense te leer hoe hulle moet leef, hoekom doen jy nie ’n slag wat jy leer nie? Jy preek graag vir ander dat hulle nie mag steel nie. Maar wat van jou? Steel jy nie? Jy sê dat ’n mens nie ontrou aan jou huweliksmaat mag wees nie. Wat van jou? Maak jy jou nie skuldig aan ongeoorloofde seksuele verhoudings nie? Jy vertel hoe jy die afgode haat. Maar intussen leef jy net soos daardie spul wat hierdie afgode aanbid. Jy spog graag oor jou groot kennis van die wet. Tog oortree jy dit. So maak jy ’n bespotting van God se goeie Naam. Dit is oor mense soos jy dat die profeet geskryf het: “Julle sondes maak dat ongelowiges allerhande lasterlike dinge oor God sê.” Jy sê dat jy die merkteken van die besnydenis aan jou liggaam dra. Natuurlik is dit belangrik, maar dan net as jy álles doen wat die wet van jou vra. As jy aan die wet ongehoorsaam is, kon jy maar net sowel nie besny gewees het nie. Die omgekeerde is ook waar: wanneer mense wat nie besny is nie, doen wat God in sy wet vra, is hulle in sy oë besny. Op die ou end gaan hierdie mense wat nie besny is nie nog oor jou oordeel, want met jou wet en jou besnydenis doen jy steeds nie wat God se wet vra nie. Verstaan jy dan nie dat daardie teken aan jou lyf nog nie van jou ’n ware Israeliet maak nie? ’n Ware Jood is iemand wie se lewe van binne af verander het. Dit is iemand wie se hart deur God besny is. Jy is nie ’n Jood bloot omdat jy die regte afkoms het nie. Glad nie. Leef daarom so dat God trots sal wees op jou. Maak dit dan saak dat jy ’n Jood is en dat jy besny is? Ja, tog! God het Hom immers aan Israel kom bekendmaak. Hy het ook toegelaat dat Israel sy woorde en dade op skrif stel. Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang? Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê: “Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.” God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.) Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie. Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is. Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry. Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.” Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie. Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. [25-26] Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo. *** Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen. God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie. Hierdie goeie nuus geld vir die Jode sowel as vir ander volke. Die Jode het mos nie die alleenreg op God nie. Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie. Al gaan dit nou nie meer oor wat ons vir God moet doen nie, maar oor wat Hy vir ons doen, beteken dit nie dat die wet van Moses sy betekenis verloor het nie. Inteendeel, ons geloof gee juis aan die wet sy regte plek. Nou kan almal wat glo, die wet gehoorsaam. Kom ons kyk gou na Abraham, ons almal se pa in die geloof. As hy deur God vrygespreek is omdat hy so verskriklik gehoorsaam was, het hy mos ’n rede gehad om homself op die skouer te klop. Maar God het hom nie oor sy gehoorsaamheid vrygespreek van sy sondes nie. Die Bybel sê immers: “Abraham het in God geglo. Daarom was sy saak met God in orde.” As jy werk, kry jy betaling daarvoor. Jy verdien dit immers omdat jy daarvoor gewerk het. God is egter nie soos ’n eienaar wat werkers beloon wat hard gewerk het nie. ’n Mens kom net in die regte verhouding met God as jy in Hom glo as die Een wat goddelose mense vryspreek. Selfs Dawid sê so. Volgens hom is elkeen wat deur God vrygespreek is sonder dat hulle die wet tot op die letter gehoorsaam, sommer baie bevoorreg. Dawid beskryf dit soos volg: “Gelukkig is almal wie se oortredings vergewe is en wie se sondes skoongevee is. Gelukkig is elkeen van wie se sondes God nie langer boekhou nie.” Dink jy dat hierdie uitspraak net geld vir mense wat besny is, of ook vir mense wat nie besny is nie? Wel, onthou jy dat ons hier bo gesê het dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het? Wanneer het dit met hom gebeur? Toe hy klaar besny was, of voor die tyd? Ja, natuurlik, nog voordat hy besny is. Eers nadat Abraham begin glo het, het God aan hom die teken van die besnydenis gegee. Die besnydenis was die amptelike bewys van God se kant dat Abraham vrygespreek is deur sy geloof. So het Abraham die geestelike pa geword van almal wat glo sonder dat hulle die teken van die besnydenis aan hulle liggame dra. Hy is die bewys dat God mense vryspreek op grond van hulle geloof. Natuurlik is Abraham ook die geestelike vader van almal wat besny is; dit wil sê, daardie mense wat nie op hierdie uiterlike teken aan hulle liggame staatmaak om hulle te verlos nie, maar wat, net soos Abraham, al hulle vertroue in God stel. Daardie beroemde belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag die hele wêreld sal bewoon, het hy nie ontvang omdat hy al God se voorskrifte stiptelik nagekom het nie, maar omdat hy geglo het. Dit is hoekom hy in die regte verhouding met God was. Dit help mos nie om te glo as mense in elk geval deur hulle gehoorsaamheid aan die wet gered kan word nie. Dan is God se belofte dat Hy elkeen vryspreek wat in Hom glo, net lippetaal. Die wet loop hand aan hand met straf. As daar nie ’n wet was nie, sou ons nie geweet het watter dinge teen God se wil is nie. Daarom is geloof so broodnodig. Geloof bied ’n nuwe pad na God toe. ’n Mens kan nooit jou eie redding verdien nie. Jy kan dit net as ’n geskenk uit God se hand ontvang. Dit is die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Hierdie belofte geld vir alle mense op aarde. Abraham is daarom ons almal se pa in die geloof. In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.” Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde. Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien. Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly. Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie? Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is. Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam se doodsonde en God se splinternuwe geskenk aan ons nie. Want God se reaksie op Adam se sonde was kort en kragtig: ’n doodsvonnis vir die ganse wêreld. Maar toe volg daar ’n wonderwerk. In reaksie op ons derduisende oortredings het Hy ons heeltemal verniet kom vryspreek van ons sondes. As dit waar is dat die dood oor die hele wêreld geheers het deur een man se sonde, dink dan net wat een Man se offer tot gevolg sal hê: ’n splinternuwe lewe! Elkeen wat God se oorvloedige goedheid en sy vryspraak deur Jesus Christus ontvang, sal soos ’n koning saam met Hom heers. Een man se sonde het gemaak dat almal skuldig staan voor God se regbank. Maar een daad van gehoorsaamheid van ’n ander Man het gemaak dat almal nou onskuldig by God se hofsaal kan uitstap. Sy gehoorsaamheid bring ware lewe vir ons almal. Anders gesê: een man se ongehoorsaamheid aan God het ons status in ’n oogwink tot dié van sondaars verlaag. Maar ’n ander Man se gehoorsaamheid aan God verander ons status in ’n oogwink tot dié van vrygespreektes. Die wet van Moses het natuurlik ook intussen op die toneel verskyn. Mense kan daarom nie langer loskom met die verskoning dat hulle nie geweet het wat reg en wat verkeerd is nie. Die wet ontmasker nou al hulle sondes omdat dit name daaraan gee. Maar gelukkig het God se genade ook nog baie meer geword. Trouens, daar is geen vergelyking tussen mense se sondes en God se genade nie. Die sonde is soos ’n wrede baas wat oor ons heers en ons uiteindelik doodmaak. Maar God se wonderlike goedheid heers oor ons elkeen wat deur Hom vrygespreek is. Dit is natuurlik net te danke aan Jesus Christus dat ons vir altyd sal lewe. Hy is nou die Here oor ons hele lewe. Moet ons dan aanhou sonde doen sodat God kan aanhou om ons vry te spreek? Nee, hoegenaamd nie! Die sonde het mos nie meer ’n houvas op ons nie. Ons is morsdood daarvoor. Julle onthou wat by die doop gebeur het, of hoe? Toe ons in die Naam van Christus Jesus gedoop is, het ons deel geword van alles wat met Hom by die kruis gebeur het, van sy dood af tot by sy opstanding. As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef. Omdat ons saam met Jesus aan die kruis doodgegaan het, sal ons beslis saam met Hom oor die dood triomfeer. Ons weet mos dat daardie sondige mens wat ons eenmaal was, kant en klaar saam met Jesus gekruisig is. Ons ou self, wat van vroeg tot laat agter elke sonde aangeloop het, is nou morsdood en begrawe. Daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie. Sonde het mos nie ’n houvas op iemand wat klaar doodgegaan het nie. Ons wat saam met Christus gesterf het, glo dat ons saam met Hom sal leef. Ons glo dit omdat ons weet dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nooit weer sal doodgaan nie. Die dood het nie meer ’n houvas op Hom nie. Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ’n houvas op julle kry terwyl julle nog hier op aarde leef nie. Moenie dat ’n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone. Onthou: Hy het julle saam met Jesus uit die dood laat opstaan. Doen net wat God sê met elke krieseltjie krag in elke liggaamsdeel van julle. Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid. Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê. Verskoon maar dat ek so ’n alledaagse beeld gebruik. Dalk help dit julle om te begryp wat ek sê. Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is. Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien. Vroeër was julle verslaaf aan die sonde. Julle kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Dink ’n bietjie: Was dit die moeite werd om so in die sonde rond te lê? Wat het dit julle in die sak gebring? Net mooi niks nie! Kry julle nie skaam as julle terugdink aan wat julle alles aangevang het nie? Om in sonde te leef is niks anders as ’n doodloopstraat nie. Gelukkig het God julle hier kom uithaal. Julle is nou voltyds in sy diens. Hy verander julle lewens nou al hoe meer tot sy eer. Boonop wag daar ’n wonderlike toekoms op julle. Die dood is nie meer julle voorland nie. Nee, julle gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly. Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo. Julle weet mos hoe die wet werk. Dit geld net solank jy leef, of hoe? Kom ek verduidelik dit met die beeld van ’n huwelik. ’n Getroude vrou is wettig aan haar man verbind solank hy leef. Maar as haar man dood is, is sy vry om weer te trou. As sy egter by ’n ander man gaan bly terwyl haar man nog leef, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man dood is, staan dit haar vry om weer te trou. Dan tree sy glad nie verkeerd op nie. [4-5] My broers en susters in die Here, dieselfde geld ook vir die wet. Julle is soos mense wat nou dood is vir die wet. Daarom hoef julle nie meer die wet te hou om by God uit te kom nie. Toe Christus aan die kruis dood is, het julle mos saam met Hom doodgegaan. Julle behoort nou aan Hom wat uit die dood opgestaan het. *** Ons is nie meer met die wet “getroud” nie, maar met Christus. Ons kan nou regtig tot eer van God leef. Voordat ons gelowiges was, het ons al die sondes gedoen waarteen die wet ons waarsku. In plaas daarvan dat die wet die mag van die sonde in ons lewens onder beheer gebring het, het dit ons aangevuur om die vieslikste dinge aan te vang. Ons was in die voorportaal van die doderyk omdat ons daardie dinge gedoen het wat die wet verbied. Maar nou is die doodsgreep van die wet op ons lewens vir altyd gebreek. Nou hoef ons ons nie meer aan allerhande reëls op papier te hou om by God uit te kom nie. Ons het nou deel aan die nuwe lewe wat die Gees bring. “Is dit dan ’n sonde om die wet te hou?” hoor ek een van julle vra. Nee, glad nie. Die wet sê juis vir ons wat sonde is. Ek sou mos nie geweet het dat ek nie mag begeer nie as die wet nie gesê het nie: “Jy mag nie begeer nie.” Tog help hierdie kennis nie veel nie, want die wet maak dat die sonde ’n vastrapplek in my lewe kry. In plaas daarvan dat die wet my keer om te sondig, maak dit my net bewus van my slegte begeertes - en laat my ook alles begeer wat deur die wet verbied word. As die wet nie daar was nie, sou sonde glad nie ’n probleem gewees het nie. Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie. Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het my egter nie by die ware lewe uitgebring nie. Inteendeel, dit het my net nog dieper in die doderyk ingesleep, want die sonde het sy aaklige kloue ook in die wet ingeslaan. Daarom kon die wet nie keer dat ek sonde doen nie. Dit het my eintlik ’n rat voor die oë gedraai. Want kort voor lank was ek in die doderyk, met die wet en al. Natuurlik is die wet heilig. Dit kom immers van God af. En natuurlik is alles wat in die wet geskryf staan ook heilig en goed. Dit sê vir ons wat God van ons vra. Hoe is dit dan moontlik dat iets wat so goed is vir my die dood bring? Is dit die wet se skuld dat ek in die mag van die dood is? Natuurlik nie. Dit is die sonde se skuld. Sonde het ook die goeie wet in sy slegte kloue beetgekry. Daarom sit ek nou in hierdie gemors. Die wet maak net van my ’n nog groter sondaar omdat ek dit nie kan gehoorsaam nie. Die wet sê vir my wat sonde is, maar keer my glad nie om dit te doen nie. Hoe tragies dat juis die wet moet wys hoe groot die mag van die sonde regtig is. Die wet kom van God af. Maar ek wat dit moet probeer gehoorsaam, is ’n sondaar. Ek is soos ’n slaaf aan die verskriklike mag van die sonde uitverkoop. Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Dis nie meer ek wat in beheer van my eie lewe staan nie. Sonde is my baas. My lewe is nou so voorspelbaar soos kan kom. Elke keer as ek besluit om goed te doen, pootjie die sonde my. In my binneste is ek regtig bly dat ek God se wet ken. Maar wanneer ek die wet moet doen, wil die res van my liggaam nie saamwerk nie. In my doen en late geld daar dus ’n ander wet as in my binneste: die sonde. Ek is vasgevang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n gevangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos waarin my liggaam vasgevang is? Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy Naam is Jesus Christus! Hy is ons Here. In my binneste is ek gehoorsaam aan God. Maar wat die res van my liggaam doen, is iets heeltemal anders. Daar heers die sonde. Daarom het ek Christus broodnodig! Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Dit alles is aan die Heilige Gees te danke. Sy nuwe wet waarborg nou splinternuwe lewe in Christus Jesus vir my. Die Gees maak my vry van die neerdrukkende wet van die sonde en die dood. Hy breek daardie magte se houvas op my lewe vir altyd. Wat die wet nooit kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarvoor is die mag van die sonde in ons lewens heeltemal te groot. Daarom het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur. Jesus het toe ’n gewone mens geword en tussen ons in hierdie sondaarsnes kom bly. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken. Nou kan ons uiteindelik doen wat die wet van ons vra. Ons lewens word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewens. Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie. Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak. My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig. As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf. Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe. Almal wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, is kinders van God. As julle hierdie keuse maak, is julle nie langer slawe van dinge soos angs en vrees nie. Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is. Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly. Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is. Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Die skepping het nie self gekies om so te ly nie. Nee, dit is die gevolg van God se straf op die sonde. Tog is daar hoop. Die skepping weet dat God dit ook eendag sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos, sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die skepping God se heerlikheid op die regte manier weerkaats. Vir altyd. Intussen steun en kreun die ganse skepping tot vandag toe soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit is nie net die skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ’n offer uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ’n plek sal hê in sy nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien, sou ons mos nie heeltyd daarop gewag het nie. ’n Mens sien tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe? Maar nou weet ons dat ’n nuwe lewe by God op ons wag, ook al kan ons dit nog nie sien nie. Daarom wag ons geduldig totdat dit aanbreek. Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie. Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid. Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai. Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek. Wie kan dit nou nog waag om ons te veroordeel? Christus Jesus is mos aan ons kant. Hy is in ons plek dood. God het Hom ook weer lewendig gemaak. Christus het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig. Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie. Daar staan juis in een van die psalms: “Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.” Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet. Daarom is ek heeltemal seker dat niks wat met ons gebeur ons ooit van God se liefde kan skei nie. Nie eens die dood of enigiets in hierdie lewe nie. Ook nie slegte engele of ander bonatuurlike magte nie. Ook nie iets wat dalk vandag of môre met ons kan gebeur nie. Ook nie enige buitengewone kragte nie. Selfs nie die hoogste berg of die diepste see hier op die aarde nie. Letterlik niks in hierdie skepping kan ons ooit van God se liefde skei nie. Hy het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het toe ons Here, Christus Jesus, in ons plek doodgegaan het. Ek wil nou met julle praat oor ’n groot probleem wat ek al lankal hier binne-in my ronddra. Dit krap my baie om. Die Heilige Gees weet dit. My probleem is Israel. Israel, my broers, my bloedfamilie saam met wie ek grootgeword het. Maar baie van hulle glo nie in Christus nie. Ag, was ék maar deur Christus vervloek in plaas van hulle. Ek sal enige tyd my plek in God se nuwe wêreld aan hulle afstaan. Hulle is tog Israeliete, God se mense. Hulle het God se glorie gesien. Hy het met hulle die een ooreenkoms na die ander gesluit. Ook die wet van Moses, die tempel en al God se wonderlike beloftes is aan hulle gegee. Groot name soos Abraham, Isak en Jakob was hulle voorouers. Boonop het die Messias uit hulle midde gekom. Dit is Hy wat nou as God oor almal heers. Hy moet geloof word. Nou en vir altyd. Vir seker! Dit wat ek oor Israel se ongeloof gesê het, beteken nie dat God se Woord nou skielik ongeldig is nie, inteendeel. Want al van Abraham se tyd af het God nie alle Israeliete as ware Israeliete beskou nie. God het vir Abraham gesê dat sy nageslag uit sy seun Isak sou voortkom. Dit beteken dus dat ’n mens nie sommer vanself ’n ware Israeliet is net omdat jou ouers Israeliete is nie. Glad nie. God alleen besluit wie regtig Israeliete is, soos Hy aan Abraham belowe het. Julle onthou mos nog hoe Hy vir Abraham gesê het: “Teen hierdie tyd volgende jaar sal Sara ’n seun hê.” Die belofte het kort daarna waar geword. Dit is egter nie al belofte van God wat in daardie tyd waar geword het nie. God het ook ’n ruk daarna uit ’n man (ek praat van ons almal se pa, Isak) vir Rebekka laat verwag. [11-13] Toe haar kinders nog nie eens gebore was nie en nog nie kon goed doen of kwaad doen nie, is daar aan haar gesê: “Jou kind wat eerste gebore word, sal die een dien wat tweede gebore word.” So het God gewys dat sy besluit om vir Hom ’n volk uit te kies nie afhanklik is van enigiets wat ons doen nie. Nee, Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Daarom staan daar in die profeet Maleagi geskryf: “Ek het Jakob liefgehad. Ek het Esau gehaat.” *** *** Beteken dit nou dat God onregverdig is? Nee, glad nie! Hy het immers vir Moses gesê: “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.” God kyk nie eers na wat mense dink en doen voordat Hy besluit om hulle te red nie. Nee, God gee so baie vir mense om dat Hy Hom oor hulle ontferm sonder om hulle dade in ag te neem. Daarom het Hy vir die farao gesê: “Ek het jou ’n baie sterk koning gemaak om ’n bepaalde rede. Ek gaan vir jou wys hoe sterk Ek is. My Naam gaan ook deur jou oor die hele aarde bekendgemaak word.” Ons sien dus hieruit dat God genadig is oor wie Hy genadig wil wees. Hy maak ook daardie mense wat Hy wil verhard se hart so hard soos klip. Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?” Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie. God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig. Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit. God kies gelukkig nie net Jode uit om sy kinders te wees nie. Nee, ook mense uit ander volke word deur Hom geroep om in Hom te glo. Dit is presies net soos God in die profeet Hosea sê: “Vir mense wat nie my volk is nie, sal Ek sê: ‘Julle is nou my volk.’ Vir haar wat geen liefde ken nie, sal Ek sê: ‘Jy is my beminde.’ Op plekke waar mense vir hulle gesê het: ‘Julle is nie deel van God se volk nie,’ juis daar sal nou gesê word: ‘Julle is kinders van die lewende God!’” Die profeet Jesaja sê van Israel: “Al is die Israeliete se getalle so baie soos al die seesand, sal daar slegs ’n klein groepie van hulle gered word. Die Here sal sy plan met groot krag hier op aarde laat waar word.” Jesaja het ook op ’n ander plek gesê: “As die Here, die Almagtige, nie vir ons ’n nageslag oorgelaat het wat in Hom bly glo nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons net soos Gomorra verwoes gewees het.” Wat is ons gevolgtrekking oor dit wat ons gesê het? Dít: mense uit ander volke wat nie eens probeer het om in die regte verhouding met God te kom nie, leef nou in vrede met Hom. God het hulle van hulle sondes vrygespreek omdat hulle in Hom glo. Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie. Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel. Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.” My broers en susters, ek het een groot wens: dat God Israel sal verlos. Dag en nag bid ek dat dit sal gebeur. Ek moet erken: die Israeliete is baie toegewyd in hulle godsdiens. Maar op die ou end help dit hulle niks nie. Want hulle het verskriklik baie ywer, maar hulle sit gestrand sonder die regte kennis van God. Hulle het God se manier van vryspraak verwerp en toe probeer om deur al die goeie dinge wat hulle doen self hulle verhouding met God in orde te kry. Maar dit werk nie so nie. Omdat hulle hulle nie aan God se plan van verlossing onderwerp het nie, het hulle sy vryspraak misgeloop. Sonder Christus help dit niks dat mense die wet probeer hou nie. Hy gee betekenis en inhoud aan alles wat die wet sê. Elkeen wat in Hom glo, word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien. Moses skryf dat elkeen wat die wet streng onderhou op grond daarvan in die regte verhouding met God sal leef. Maar hy sê dat wanneer jy al jou vertroue in God stel om jou van jou sondes vry te spreek, dinge heeltemal anders verloop. As jy in God glo, weet jy dat Christus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie. Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo. Moses het immers al gesê: “God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo.” Ek maak hierdie goeie nuus oral bekend. En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos. Die Bybel sê immers: “Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.” Hierdie goeie nuus geld vir alle mense, vir Jode en ook vir nie-Jode. Die Here heers oor ons almal. Hy stort sy groot genade uit oor almal wat Hom om hulp vra. Elkeen wat uitroep: “Here, help my!” sal gered word, maak nie saak wie hy is nie. Jy kan nie die Here vra om jou te help as jy nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan jy weet wie Hy is as jy nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan mense van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.” Nie almal glo egter hierdie goeie nuus nie. Daarom het Jesaja op ’n dag gevra: “Here, wat help dit dat ons vir ander mense van U vertel? Hulle glo dit tog nie.” Nogtans moet die Woord van die Here bekendgemaak word. Mense kan net tot geloof kom as hulle die Woord hoor. Daarom maak ek die boodskap van Christus oral bekend sodat mense ’n kans kan kry om dit te hoor. Nou vra ek: Het hulle nie al genoeg kanse gehad om na God se Woord te luister nie? Ja, natuurlik! Een van die psalms sê juis: “Die stem van God se boodskappers het wêreldwyd weerklink. Hulle woorde is tot in die verste uithoeke van die wêreld gehoor.” Waar lê die fout dan? Het Israel nie verstaan waaroor dit alles gaan nie? Luister na wat God deur sy kneg Moses hieroor sê: “Ek gaan julle nog baie jaloers maak op daardie mense op wie julle nou neersien. Wanneer julle sien hoe hulle in My glo, selfs al ken hulle My nie so goed soos julle nie, sal julle ontplof van woede.” Jesaja het selfs nog verder gegaan. God het deur hom vir sy volk gesê: “Ek laat My vind deur mense wat nooit na My gesoek het nie. Ek het My bekendgemaak aan mense wat nooit eens gevra het wie Ek is nie.” Daarna het Jesaja ook ’n verdoemende woord van God se kant af aan Israel gerig: “Dag na dag het Ek met oop arms op Israel se terugkoms gewag. Maar hulle ore is doof en hulle harte is so hard soos klip.” Het God Israel afgeskryf? Nee, glad nie. Ek self is die bewys dat dit nie waar is nie. Ek is immers ook ’n Israeliet, ’n lid van Abraham se nageslag, uit die stam van Benjamin. Maar die belangrikste bewys dat God nie sy rug vir Israel gedraai het nie, is Hy self. Hy het Hom lank gelede aan Israel bekendgemaak. En Hy is nog heeltyd by hulle. Onthou julle die keer toe Elia oor hierdie einste Israeliete by God gaan kla het? “Here, hulle het u profete doodgemaak. Hulle het u altare onder hulle voete vertrap. Ek het alleen oorgebly. Nou is hulle ook agter my bloed aan, hulle wil my doodmaak.” Julle onthou nog wat God se antwoord aan Elia was: “Ek het 7 000 mans vir My oorgehou. Hulle dien My. Hulle sal nie daardie heidense afgod, Baäl, aanbid nie.” Tot vandag toe is hierdie woorde waar. Daar is nou nog ’n klein groepie Israeliete wat in God glo. God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. As mense hulle redding moes verdien, sou God mos nie meer ’n genadige God wees nie. Wat het dan met die res van Israel skeefgeloop? Wel, hulle het op die verkeerde manier by God probeer uitkom. Slegs die klein groepie wat deur God uitgekies is, het bly glo. Al die ander se harte is kliphard gemaak. Dit gaan met hulle presies soos die Bybel sê: “God het hierdie spul oorgegee aan ’n diep slaap. Daarom sien hulle glad nie meer nie, en hulle hoor ook nie. Dit gaan tot vandag toe nog so.” Dawid sê dieselfde in een van die psalms: “Mag hulle feesmaaltye hulle dodelik siek maak. Mag hulle in ’n lokval gelei word en in groot moeilikheid beland. Mag hulle blind word sodat hulle niks kan sien nie. Mag hulle vir altyd krom loop van die pyn.” Is Israel se kans by God vir altyd verby? Beteken hulle val die einde van God se pad met hulle? Nee, natuurlik nie. Ironies genoeg het Israel se val vir ander volke die kans gebied om God se redding te smaak. Dit moet Israel sommer groen van jaloesie maak. As hulle sien hoe mense uit ander volke nou God se goedheid geniet, moet hulle hulle begin afvra of hulle nie die ware lewe misloop nie. As Israel se ongeloof bygedra het tot ’n wêreldwye bekering van mense uit ander volke, en as hulle val die res van die wêreld verryk het, dink net wat dit vir die wêreld sal beteken as al die Israeliete tot bekering moet kom. Maar wag, ek wil nou spesifiek met diegene onder julle praat wat nie Israeliete is nie. Ek is immers deur God aangestel as ’n apostel om die goeie nuus aan mense buite Israel te vertel. En wat ’n wonderlike bediening is dit nie! Ek doen dit met groot oorgawe in die hoop dat ek dalk my eie volk, die Jode, jaloers kan maak. Miskien kom ’n paar van hulle tot bekering as hulle sien hoe God se genade mense wat nie aan Israel behoort nie se lewe verander. As God se verwerping van Israel daartoe gelei het dat die res van die wêreld met Hom versoen geraak het, dink net wat hulle terugkeer na God toe sal beteken: niks minder nie as die ewige lewe self! Weet julle, as hierdie eerste offers vir God aanvaarbaar is, moet die res van die offer ook mos vir Hom aanvaarbaar wees. En as die wortel van die boom aan God gewy is, is die res van die boom ook mos Syne. Israel is soos die takke van ’n olyfboom wat stewig in die grond geanker is. Maar party van hierdie olyfboom se takke is intussen afgebreek. Dit is al daardie Israeliete wat nie na God wou luister nie. In hulle plek is jy wat nie ’n Israeliet is nie soos ’n wildeolyf tussen die takke van die olyfboom ingeënt. Op dié manier kon jy deel in die wortel se lewenskrag. God se genade en sy liefde het ook na jou toe gevloei. Jy moet egter nie nou dink dat jy beter as die ander takke is nie. Dis regtig nie jý wat die boom met wortel en al dra nie. Nee, dit is die wortel, God se genade wat van Abraham se tyd af deur die olyfboom vloei, wat jou ook dra. As dit nie daarvoor was nie, het jy ook nie geglo nie. Miskien sal jy sê: “’n Klompie takke is afgebreek om vir my plek te maak.” Goed. Jy’s reg. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie, en jy is in die olyfboom ingeplant omdat jy glo. Maar dit moet jou juis nederig maak. Jy moet groot eerbied vir God hê. Onthou: God het nie gehuiwer om daardie ongelowige Israeliete uit te kap nie. Dink jy Hy sal anders met jou maak as jy nie na Hom luister nie? God is streng. Maar Hy is ook vol liefde. Hy tree streng op teenoor dooie lote, teenoor mense wat nie na Hom luister nie. Maar Hy tree vol liefde op teenoor lewende lote, teenoor mense soos jy wat elke dag uit sy goedheid leef. Jy mag egter nie God se goedheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Dan kap Hy jou op ’n dag ook uit. In God se olyfboom is daar nie plek vir dooie lote wat nie doen wat Hy sê nie. Daar is tog goeie nuus vir die dooie lote, vir Israeliete wat nie in Christus glo nie. As hulle tot bekering kom, sal hulle dadelik weer in die olyfboom ingeënt word. God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef. Immers, as God vir jou wat ’n wildeolyftak is, so suksesvol op sy olyfboom kon inent, is dit mos geen probleem vir Hom om daardie olyftakke wat afgebreek is ook weer op die olyfboom in te ent nie. My broers en susters, ek wil hê dat julle goed moet begryp hoe God se plan werk. As julle verkeerd oor Israel oordeel, dink julle kort voor lank dat julle belangriker as hulle is. Daarom wil ek nou ’n paar van God se geheime met julle deel. Wel, julle weet dat baie Israeliete se harte kliphard is, want hulle weier om in God te glo. Maar dit sal ophou wanneer al God se uitverkorenes uit ander volke tot bekering gekom het. Op hierdie manier sal die ganse Israel, alle ware Israeliete, na God toe terugkeer. Dit is soos daar geskryf staan: “Die Redder kom van die berg Sion af. Hy sal Jakob se goddeloosheid verwyder. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes vergewe.” Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys. Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen? Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen! Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee. Weet julle, God is baie goed vir my. Hy het my as sy apostel aangestel om sy wil bekend te maak. Daarom kan ek vir julle almal sê dat julle nie te veel van julleself moet dink nie. Nee, wees nederig. Onthou dat julle geloof ’n geskenk uit God se hand is. Wees dankbaar vir die geloof wat julle wel van Hom ontvang het. En hou op om julle met ander te vergelyk. Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap. Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting. Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe. Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou. Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie. Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort. Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig. Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here. “‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’” Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra. Wees ’n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is. Onthou: hulle ontvang hulle gesag van God af, van Hom wat oor al die mag beskik. As jy nie na die owerhede luister nie, verset jy jou eintlik teen God self. Dan wag daar groot probleme op jou. ’n Mens hoef natuurlik nie vir die owerhede bang te wees as jy hulle wette gehoorsaam nie. As jy egter ’n wetsoortreder is, het jy rede om benoud te wees. Terloops, dit is baie maklik om op goeie voet met die owerhede te wees: kom net al jou verpligtings getrou na. Dan sal hulle selfs sê dat jy ’n voorbeeldige landsburger is. Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. As jy ’n wetsgehoorsame burger is, kan jy maar ontspan. Maar as jy die wet oortree, gaan hulle jou swaar straf. God vereis immers van die owerhede om alle wetsoortreders vas te vat. Jy moet egter nie net na die owerhede luister omdat jy bang is dat jy gestraf sal word as jy verkeerd doen nie. Nee, jy moet ook na hulle luister omdat jy weet dat God dit van jou vra. Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. Betaal dus wat jy verskuldig is: belasting aan dié wat belasting vra, tolgeld aan dié wat dit vra, ontsag aan dié wat dit toekom, respek vir dié wat gerespekteer moet word, en eer vir dié wat geëer moet word. Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet. Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur. Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag. Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar. Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie. Moenie maak asof jy beter is as ander gelowiges wie se geloof nog nie so sterk soos joune is nie. Aanvaar hulle met oop arms sonder om van vroeg tot laat met hulle te stry en baklei. Ek wil dit met ’n voorbeeld illustreer. ’n Christen wie se geloof sterk is, het nie ’n probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ’n Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle. Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie. In elk geval, mense wat in God glo, al doen hulle dit op ’n ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg. Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ’n ander dag te hou, doen dit dan tot eer van die Here. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van die Here. Sê vir God dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouings bots, doen dit ook tot eer van die Here. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan. Die Bybel sê mos: “‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’” Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen. Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie. Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is dat ander gelowiges struikel en val nie. Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie. As julle my persoonlike mening oor al hierdie dinge vra, sê ek sommer reguit vir julle dat geen kos vanself onrein is nie. ’n Mens kan enigiets eet. Maar as party mense tog dink dat dit verkeerd is om sekere soorte kos te eet, moet hulle dit liewer nie eet nie. Dan doen hulle verkeerd. Hiervan het die Here Jesus my oortuig. As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf. Waarom wil jy hulle lewens dan verwoes deur iets wat glad nie belangrik is nie? Moenie só julle goeie naam deur die modder sleep nie. Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle. Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig. Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Dit is wonderlik as jy nie met ’n klomp skuldgevoelens opgeskeep sit oor hoe jy God dien nie. Maar as jy twyfel of dit wat jy doen reg is - as jy byvoorbeeld vleis eet terwyl jy nie weet of jy dit mag doen nie - is jy skuldig voor God. As dit wat jy doen nie uit jou geloofsoortuigings voortspruit nie, is dit sonde. Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie. Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor ons nie. Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou. Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê: “Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.” Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here. Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê. Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe. Julle moet mekaar asseblief aanvaar. Onthou: Christus het julle almal met oop arms aanvaar en op hierdie manier groot eer aan God gebring. Christus het aarde toe gekom om die Jode te dien en om te wys dat God sy woord hou. So het Hy die beloftes wat God aan hulle voorouers gemaak het, waar laat word. Maar Christus het gelukkig nie al die ander volke vergeet nie. Hy het hulle so jammer gekry dat Hy ook aan hulle ’n plek in God se nuwe koor gegee het. Daarom maak hulle nou ook sy Naam groot. Die Bybel vertel ook vir ons hiervan: “Saam met mense uit ander volke sal ek u Naam grootmaak. Ek sal u Naam loof deur ’n psalm tot u eer te sing.” En ook: “Wees bly, almal van julle wat aan ander volke behoort. Wees bly saam met almal in Israel.” En: “Mense van alle volke: Prys die Here! Almal op aarde: Loof die Here!” Of soos Jesaja sê: “’n Baie belangrike persoon sal uit ons voorvader Isai se nageslag kom. Hy sal oor die hele aarde regeer. Almal sal hulle hoop en vertroue in Hom stel.” Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die groot krag van die Heilige Gees in julle lewens, altyd oorvloedige hoop hê. Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil. My broers en susters, ek weet van al julle goeie eienskappe. Julle is toegewyde mense. Julle het ook baie kennis oor God. Boonop help julle mekaar om te leef soos God dit wil hê. Daarom moet julle tog nie dink dat my brief, wat hier en daar nogal skerp is, as kritiek teen julle bedoel is nie. Glad nie. Ek sê maar net reguit alles wat God deur sy goedheid van my verwag om vir julle te sê. Hy het my aangestel as Christus Jesus se dienaar om onder mense te werk wat nie aan Israel behoort nie. Dit is my taak om soos ’n priester die goeie nuus van God aan hulle te bring. Hulle moet soos ’n offer voor God neergesit word, ’n offer wat God baie bly maak omdat die Heilige Gees hulle lewens nuutgemaak het. Ek is baie trots op alles wat Christus Jesus tot dusver deur my werk vir God bereik het. Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Hy het elke woord en daad van my in sy diens geneem. Oral het mense wat nie aan Israel behoort nie, begin om in God te glo. Groot tekens en wonders het plaasgevind waar ek gepreek het. Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. Daarom kon ek die goeie nuus oor Christus van Jerusalem af tot in die noordweste van Griekeland, daar in Illirikum, uitdra. Ek het vir my een doel voor oë gestel: ek moes in plekke gaan preek waar mense nog glad nie van Christus gehoor het nie. Dit is nie my taak om die evangelie te gaan verkondig waar mense al klaar die evangelie bekendgemaak het nie. My leuse word in die volgende Bybelteks saamgevat: “Daardie mense wat nog nie van die Here gehoor het nie - hulle sal Hom sien! Hulle wat nog glad nie van Hom gehoor het nie - hulle sal verstaan waaroor dit alles gaan!” As gevolg van al my sendingwerk kon ek tot nou toe nog nie daar by julle uitkom nie. My werk in hierdie streke is egter nou afgehandel. Daarom kan ek my jare lange droom om Rome toe te gaan uiteindelik waar maak. Ek gaan binnekort Spanje toe. Op pad soontoe kom ek dan ’n rukkie by julle oorbly. Daarna kan julle my op die pad na Spanje toe weghelp. Voordat ek na julle toe kom, moet ek net eers in Jerusalem ’n draai gaan maak. Ek is op pad soontoe met ’n groot geldelike bydrae vir die gelowiges wat daar bly. Hierdie geld is deur Christene in die provinsies van Masedonië en Agaje vir die arm gelowiges in Jerusalem ingesamel. Hulle het hierdie liefdesdiens met groot geesdrif onderneem. Eintlik is dit ook hulle plig om die gelowiges in Jerusalem te help. Hulle het immers groot geestelike geskenke van daar af ontvang. Die goeie nuus oor Jesus Christus het mos van Jerusalem af na die hele wêreld toe uitgekring. Daarom is dit ook net reg dat die Christene van Masedonië en Agaje hulle geld met die arm gelowiges in Jerusalem deel. Sodra ek hierdie wonderlike geldelike bydrae van die gelowiges uit Masedonië en Agaje veilig in Jerusalem besorg het, gaan ek Spanje toe. Op pad soontoe kom bly ek dan by julle daar in Rome oor. Ek weet dat my plan om julle te kom besoek Christus se volle goedkeuring en sy seën wegdra. Daarom wag daar ’n groot fees op ons almal. My liewe broers en susters, ek wil tog iets belangriks vir julle vra: bid asseblief vir my! Ek vra dit in die Naam van ons Here Jesus Christus. En ek vra dit omdat die Heilige Gees ons almal met liefdesbande aan mekaar vasgebind het. Julle moet baie ernstig vir God vra om my te beskerm teen al die ongelowiges daar in Judea. Bid ook dat die Christene in Jerusalem hierdie geldelike bydrae wat ek na hulle toe vat, sal aanvaar. Daarna, as God wil, kom ek na julle toe. Ek sien sommer baie daarna uit. Dit sal my hart bly maak om julle te sien en om ’n rukkie daar by julle te kom uitrus. Ons wonderlike God wat vrede gee, is by julle almal. Amen. Febe, die dienende leier van die kerk in Kenchreë, een van die hawens van Korinte, is op pad daar na julle toe. Ontvang haar asseblief vriendelik in die Naam van die Here. Maak julle harte en julle huise vir haar oop, soos dit mos by gelowiges pas. Febe het in die verlede al aan baie mense goed gedoen. Sy was selfs ook my weldoener. Daarom vra ek dat julle haar tog asseblief op die hande moet dra. Sê ook groete aan my twee goeie vriende Priscilla en Akwila. Hulle het baie hard saam met my gewerk om die goeie nuus oor Christus Jesus uit te dra. Hulle was selfs bereid om hulle lewens vir my te waag. Natuurlik is ek nie die enigste persoon wat dankbaar is oor alles wat hierdie egpaar doen nie. In al die gemeentes waar mense uit ander volke bymekaarkom, is daar groot waardering vir Priscilla en Akwila. O ja, sê asseblief ook groete aan die gelowiges wat daar in hulle huis in Rome bymekaarkom. Dra my groete oor aan my liewe vriend Epenetus. Weet julle, hy is die heel eerste persoon in die provinsie Asië wat ’n Christen geword het. Groete ook aan Maria. Sy dien julle almal met groot oorgawe. Sê ook vir daardie twee volksgenote van my, Andronikus en Junias, dat ek aan hulle dink. Hulle was vroeër saam met my in die tronk. Die apostels in Jerusalem dink baie van hulle. Hulle is twee gesoute gelowiges wat selfs nog voor my Christene geword het. Sê groete vir Ampliatus, my goeie vriend in Christus, en vir Urbanus, een van my medewerkers in Christus se diens, en vir Stagis, ’n gewaardeerde vriend. Groete ook aan Apelles, ’n toegewyde gelowige, en almal daar in die huis van Aristobulus. Laat weet ook vir Herodion, nog ’n volksgenoot van my, dat ek aan hom dink. Sê asseblief ook groete aan almal in Narsissus se huis wat in die Here glo, asook vir Trifena en Trifosa, twee vroue wat die Here met oorgawe dien. Groete ook aan my goeie vriendin Persis. Sy is ’n toegewyde kind van die Here. Dra ook my goeie wense oor aan Rufus, iemand wie se hele lewe wys dat hy deur die Here uitgekies is. Groete ook aan sy ma. Weet julle, sy is ook vir my soos ’n ma. Sê groete vir Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die ander broers daar by hulle. Groete ook aan Filologus en Julias, asook aan Nereus en sy suster, en aan Olimpas en al die gelowiges daar by hulle. Groet mekaar met groot hartlikheid en liefde, soos dit by gelowiges pas. Al die ander gemeentes van Christus stuur ook groete vir julle. Broers en susters, oppas vir daardie mense wat die kerk probeer skeur met hulle vals sienings oor God. Hulle krap almal om omdat hulle dinge sê wat in stryd is met alles wat julle oor God geleer het. Bly uit hulle pad uit. Hierdie mense maak net asof hulle Christene is, maar hulle stel glad nie daarin belang om ons Here Jesus te dien nie. Nee, hulle dien net hulle eie siek begeertes. Hulle gebruik mooi woorde en vleitaal om onskuldige gelowiges deurmekaar te maak. Teen hierdie tyd weet almal al van julle geloof in Christus. Dit maak my hart sommer baie bly. Ek is regtig trots op julle. Hou so aan. Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar wees dom wanneer dit by sondes kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in julle lewens gee nie. Ek het goeie nuus vir julle: ons wonderlike God wat aan ons almal sy vrede gee, gaan Satan binnekort onder julle voete fyn en flenters trap. Tot op daardie dag sal ons Here Jesus Christus met sy goedheid by julle wees. My medewerker in Christus se diens, Timoteus, stuur vir julle groete. So ook my volksgenote Lucius, Jason en Sosipater. Tertius, wat alles neergeskryf het wat ek in hierdie brief sê, stuur ook groete in die Here. Gaius, by wie ek tans bly, en die hele gemeente in Korinte laat weet ook dat hulle aan julle dink. So ook Erastus, die stadsklerk van Korinte, en Kwartus, ’n toegewyde broer in die Here. *** God besit al die mag. Niemand in die hemel of op die aarde is so sterk soos Hy nie. God sal sorg dat julle in Hom bly glo. Ek weet dit omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus ken. Ek maak dit oral bekend, ook aan julle. Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie, maar nou het Hy dit openlik kom bekendmaak. God het beveel dat dit wat in die profete opgeskryf staan, nou verkondig moet word aan mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie. Hy wil hê dat hulle ook in Hom moet glo en doen wat Hy sê. Ons wonderlike God besit al die wysheid en die kennis. Aan Hom, die enigste God, kom al die eer toe, van nou af tot in ewigheid deur Jesus Christus. Amen! Van Paulus. Jesus Christus het my geroep en my met ’n spesiale doel gestuur. Dit is hoe God dit wou gehad het. En van Sostenes, wat ook ’n kind van God is. Aan die gemeente van God in Korinte. Dit is die mense wat aan God behoort omdat hulle Jesus Christus ken. God het hulle geroep om net vir Hom te leef. Die brief is ook bedoel vir al die mense wat ons Here Jesus Christus se gesag erken en Hom aanbid. Dit maak nie saak waar hulle is nie, net solank húlle Here óns Here is. Mag God ons Vader en ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees. Mag Hulle julle innerlik rustig maak en vrede gee. Ek sê altyd vir God dankie vir al die goeie dinge wat Hy so onverdiend vir julle gee. Ek praat van alles wat julle gekry het vandat julle Jesus Christus leer ken het. Hy het letterlik alles vir julle gegee wat julle nodig gehad het. Julle het die dinge van God goed leer ken en kan maklik daaroor praat. Dat dit wat ek vir julle oor Jesus vertel het, waar is, kan in julle lewe gesien word. Ja-nee, julle het niks nodig nie, want God sorg dat julle kry wat julle op geestelike gebied nodig het. Julle sien ook opgewonde daarna uit dat ons Here Jesus Christus weer na ons toe kom sodat almal Hom kan sien. Niemand sal dan ’n enkele skewe woord teen julle kan sê nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê. Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Hy self het julle uitgenooi om Jesus Christus, ons Here, se goeie vriende te word. Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam. Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei. Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.” Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is? Nou is ek eintlik bly dat ek nie te veel van julle gedoop het nie, maar net vir Krispus en Gaius. Daarom kan niemand nou loop en spog dat hy deur my gedoop is asof dit iets besonders is nie. (O ja, amper vergeet ek, ek het nog Stefanas en sy mense ook gedoop. Verder kan ek aan niemand anders dink nie.) Christus het my nie gestuur om mense vir myself bymekaar te maak deur te doop nie. Nee, Hy het my gestuur om vir julle die goeie boodskap oor Hom te kom vertel. Dit moet ek nie doen met vreeslik geleerde en moeilike taal om mense te beïndruk nie. Nie taal nie, maar die werklikheid van die kruisgebeurtenis van Jesus moet mense beïndruk. Daar lê die werklike krag van die boodskap oor Jesus. En dit mag nooit agter slim argumente of geleerde taal weggesteek word nie. Dat Jesus aan die kruis moes sterf, klink wel so onwaar soos ’n feëverhaal vir die mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle is buitendien op pad hel toe. Maar ons wat God leer ken het en nou Syne is, put soveel geestelike krag daaruit. God maak ons sterk deur die boodskap oor wat aan die kruis gebeur het. Daar is geskryf: “God sal vir almal wys hoe verkeerd selfs die slimste mense is. Wat vir hulle so slim lyk, is eintlik maar baie dom.” Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie? Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. [24-25] Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie. *** My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan. God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak. Dinge waaraan mense hulle nie steur nie en wat hulle dink nutteloos is, gebruik God om sy doel te bereik. So word dinge wat mense weer dink iets werd is, nutteloos wanneer dit by God se planne kom. Geen mens kan dus voor God gaan staan en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het en daarvoor geprys moet word nie. God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak. Daar staan mos geskryf: “As iemand wil spog, laat hom spog oor wat die Here gedoen het.” My liewe vriende, onthou julle nog toe ek die eerste maal daar by julle aangekom het? Toe ek julle van God se wonderlike planne kom vertel het, het ek nie met lang stories wat mooi klink of ingewikkelde redenasies gekom nie. Ek het dit doelbewus eenvoudig gehou: ek het julle van Jesus Christus kom vertel, die Jesus wat aan die kruis dood is. Ek was nie voor op die wa nie. Om die waarheid te sê, ek was maar skrikkerig, want ek het geweet ek is nie iemand wat belangrik of invloedryk is nie. Ja, my boodskap was eenvoudig. Dit was nie ’n klomp hoë woorde wat ’n mens se kop laat draai of so geleerd klink dat jy maar net ja en amen sê nie. In plaas daarvan om na slim argumente te luister kon mense eerder sien hoe kragtig die Gees van God werk. Julle vertroue op God en sy boodskap staan dus nie op die wankelrige pilare van mense se slim idees nie, maar dit staan vierkant op die krag van God. Ek praat met julle oor baie diep dinge wat julle lewe diep beïnvloed. Net mense wat daarvoor ryp is, kan dit regtig verstaan. Dit is nie populêre dinge of dinge wat die belangrike mense baie beïndruk nie. Hierdie mense leef in elk geval maar net ’n rukkie en dan gaan hulle manier van lewe saam met hulle dood. Nee, die boodskap wat ek bring, is dit wat regtig waar en reg is. Dit is soos God bedoel het ons lewe moet wees. Niemand het mooi besef presies hoe dit sou wees nie, want God het dit geheim gehou tot nou toe. Nog voor die wêreld geskape is, het Hy al hierdie dinge spesiaal net vir ons reggemaak. Nie een van die leiers van hierdie wêreld het ’n idee waaroor God se planne gaan nie. As hulle ’n idee gehad het, sou hulle nie die Here wat soveel goddelikheid uitgestraal het, aan ’n kruis vasgeslaan het om daar te sterf nie. Daar is mos geskryf: “Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie. In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie. Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het vir die mense wat Hom liefhet.” Ons weet nie hierdie dinge sommer vanself nie. God het dit vir ons met behulp van sy Gees kom verduidelik. Die Heilige Gees weet alles, tot alles wat in God se diepste gedagtes aangaan. Dit is net soos met ’n mens. Niemand weet wat binne-in jou omgaan behalwe jou gees nie. Net so weet niemand wat binne-in God omgaan behalwe God se Gees nie. Juis hierdie Gees het God vir ons gegee. Hy het nie sommer ’n gewone gees vir ons gegee wat niks van Hom af weet nie. Omdat ons God se Gees in ons het, kan ons presies begryp wat God so onverdiend vir ons gegee het. Die Gees vertel ons immers daarvan. Ons vertel julle dus nie allerhande slimmighede wat ons by ander mense gehoor of in boeke gelees het nie. Wat ons julle vertel, het ons by die Gees self geleer. Dit is God se geestelike boodskap. Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mense kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie kan verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie. Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie kan verstaan nie. Hy is die een wie se oë heeltemal toe is vir die geestelike dinge. Net die Heilige Gees kan hierdie dinge vir ’n mens duidelik maak. Iemand wat die Heilige Gees in sy lewe het, sal weet wat om van al hierdie dinge te dink. Hy sal geestelik sensitief wees, al sal die ongelowige mense hom nie verstaan nie. Die Skrif sê mos: “Wie weet wat binne-in die Here omgaan sodat hy vir Hom kan sê wat om te doen?” Ons wat sy Gees het, ken Jesus deur en deur. My vriende, ek kon nie met julle praat soos met mense wat die geestelike dinge van God verstaan en so leef nie. Ek moes sowaar met julle praat soos met mense wat glad nie bekommerd is oor wat God wil hê nie. Julle het net aan julleself gedink. Julle was net soos mense wat so pas Christene geword het en nog nie mooi weet wat Jesus van julle verwag nie. Geestelik was julle soos pap babatjies. Soos ’n pap babatjie net melk kan inkry, het julle net kans gesien vir die heel eenvoudigste geestelike boodskappe. Enigiets meer ingewikkeld was vir julle te veel. En nog steeds gaan dit so met julle, want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie juis dat julle net aan julleself dink nie? Tree julle nie op soos mense wat eerder hulle eie belange as God se belange kies nie? Is dit nie presies wat julle prakties bewys as die een sê: “Ek dink Paulus is die beste dominee,” en die ander een weer: “Nee, ek dink Apollos is beter” nie? Wie is Apollos nou miskien dat hy so besonders is? Of Paulus, dat die gemeente so oor hulle moet stry? Hulle is maar net werkers van God wat julle gehelp het om Jesus te leer ken. Die Here het vir elkeen sy spesiale werk gegee. Dit is maar al wat hulle doen. Ek het die saad van die evangelie in julle hart geplant en Apollos het dit nat gehou, maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei. Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie? Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei. Die een wat die saad plant en die een wat dit nat hou, werk saam soos in een span. Daar is nie ’n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie. Buitendien is God - en nie ons nie - die Een wat sal sorg dat elkeen van hulle die dank sal kry wat hulle verdien. Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help. ’n Mens kan julle, as die Here se gemeente, ook vergelyk met ’n gebou wat aan God behoort. God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou. Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het. Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou. Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou, want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie. God sal vir hulle wat goed gebou het ’n goeie beloning gee. Maar die mense wat sleg gebou het, sal op die dag wanneer die Here weer kom om hulle werk te inspekteer, baie spyt wees. Die Here sal hulle wel nie wegjaag nie, maar dit sal vir hulle net so goed wees asof hulle niks vir die Here gedoen het nie. Hulle sal met ’n bloedrooi gesig skaam agter in die ry moet gaan staan. Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly. As iemand God se tempel skade aandoen, sal hy met God self te doen kry. En dit gaan nie lekker wees nie, want God se tempel behoort aan Hom. Dit is Syne en net Syne. Julle is daardie tempel van God. Moenie gekke van julleself maak nie. Moenie dink julle is baie oulik en slim as julle lekker met die mense kan saampraat oor al die aardse dinge wat in die mode is nie. Dit is nie waar werklike wysheid lê nie, want God het alles mooi omgekeer. Wat vir mense slim lyk, is eintlik maar dom, terwyl dit wat vir mense dom lyk, eintlik regtig slim is. Daar is mos geskryf: “Die slimmes praat hulle met hulle eie slimmighede heeltemal deurmekaar,” en verder: “Die Here weet dat wat die slim mense dink eintlik net leë gedagtes is.” Om dus regtig wys te wees moet ’n mens soos God begin dink. God het mos vir julle alles gegee. Los die gestry oor watter mense die belangrikste is. In vergelyking met God is almal eintlik niks nie, of dit nou Paulus is, of Apollos of Sefas. God het vir julle die wêreld gegee; Hy het vir julle lewe gegee en julle hoef nie meer bang te wees vir die dood nie. Die dinge wat vandag gebeur en wat nog in die toekoms gaan gebeur, het God alles vir julle gegee. Dit, en nie mense nie, moet vir julle belangrik wees, want julle is Jesus s’n en Jesus is God s’n. Moenie van ons, wat julle geestelike leiers is, iets maak wat ons nie is nie. Ons is net mense wat vir Jesus werk. God het ons gevra om aan julle die dinge oor Hom te vertel wat julle nie weet nie. Natuurlik word daar van iemand wat so ’n belangrike werk het, verwag om dit deeglik te doen. Maar ek steur my min aan wat ander mense oor my werk kwytraak. Ek self mors ook nie tyd om te sit en tob of ek goed of sleg vaar nie. Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie en my gewete pla my ook nie. Dit beteken nie dat ek alles reg doen nie. God sal daaroor besluit. Moet daarom nie te vinnig wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed nie. Wag geduldig tot die Here kom. Hy sal nie oppervlakkig oordeel nie. Die dinge wat mense skelm gedoen het, sal dan nie meer in die donker bly nie. Dit sal oop en bloot wees vir almal om te sien. Die motiewe waarmee mense vir die Here gewerk het, sal op dié dag nie meer weggesteek kan word nie. Dit sal daar wees vir almal om te hoor. Dit sal soos ’n prysuitdeling wees: elkeen sal van God die prys kry wat hy verdien. My liewe vriende, ek het myself en Apollos as voorbeeld gebruik om dit vir julle makliker te maak om te verstaan wat die gesegde beteken: “Moenie verder gaan as wat God jou geleer het om te gaan nie.” As julle dit verstaan, sal julle nie die een werker van God prys en die ander een afkraak nie. Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders? Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is? Julle dink mos julle het alles wat julle nodig het, ja, in julle eie oë is julle geestelike miljoenêrs. Julle gedra julle asof julle die belangrikste mense op die aarde is en ons glad nie nodig gehad het nie. Ek wens dat julle régtig so belangrik geword het, want dan sou ons saam met julle net so belangrik kon wees. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog. Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet. Onthou dit, julle kan duisende mense hê wat vir julle baie dinge oor Christus leer, maar julle kan net een geestelike vader hê. Ek is julle geestelike vader. Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die eerste maal by my die wonderlike boodskap oor Jesus Christus gehoor het. Daarom vra ek julle baie mooi om te maak soos ek maak. Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op. Juis daarom stuur ek Timoteus na julle toe. Hy is vir my soos ’n seun en ek het hom baie lief. Hy is ook baie getrou aan die Here. Hy sal weer met julle gesels oor hoe ek as Christen leef en wat ek oor Christus leer. Julle onthou mos nog. Dit is wat ek oral, in elke gemeente, vir al die mense leer. Daar is party van julle wat ewe windmakerig hulle invloed in die gemeente wil laat geld en voorgee dat ek nie die moed sal hê om weer na julle toe te kom nie. Daar wag ’n verrassing vir julle. As die Here my toelaat, is ek binnekort weer daar by julle. Dan sal ons sien of daardie ouens wat so baie van hulleself dink net ’n klomp wind is en of daar iets in hulle steek. Immers, as iemand ’n kind van God is, sal ’n mens in die manier waarop hy leef die krag van God kan sien. Dit vra baie meer as om net ’n klomp storietjies te maak. As julle nou moet kies, wat sou julle wou hê? Moet ek met ’n sambok kom om slae te kom uitdeel of moet ek liewer met liefde en vriendelikheid kom? Besluit julle maar self. Iemand het my vertel dat daar in die gemeente mense is wat baie onsedelik leef. Ek het gehoor dit is so erg dat selfs die nie-Christene hulle skaam en nooit sulke dinge sal doen nie. Neem byvoorbeeld daardie twee wat soos man en vrou saamleef, maar eintlik is hulle kind en stiefma. En dan dink julle julle is soveel beter as ander mense. Moet dit nie liewer julle hart breek nie? Behoort julle nie liewer mense wat sulke dinge aanvang te waarsku dat hulle uit die gemeente gesit sal word as hulle so voortgaan nie? [3-4] Hoewel ek nie self daar is nie, is ek in my gedagtes by julle. Ek het mooi nagedink wat ek met sulke mense sou doen as ek daar was. Hulle kan nie so aangaan nie. Kom bymekaar as gemeente wat onder die gesag van die Here Jesus staan. Ek sal in my gedagtes ook daar by julle wees. Die Here Jesus sal vir julle die krag gee om te doen wat reg is. *** Gooi daardie onsedelike man uit die gemeente uit sodat hy kan voel hoe dit is om sonder die Here in die greep van Satan te leef. So sal die sonde wat hy so lustig doen vir hom sleg begin word. Hy sal besef dat die gevolge daarvan nie so lekker is as wat dit altyd lyk nie. Dan sal hy terugdraai na God toe en wanneer die Here weer kom, sal hy weer aan die kant van God staan. Ek haat dit as julle so grootpraat oor julle Christenskap. Laat ek vir julle met ’n voorbeeld verduidelik wat ek bedoel. Julle weet mos hoe suurdeeg werk. ’n Mens sit ’n klein stukkie suurdeeg in ’n groot bak deeg en dan trek daardie bietjie suurdeeg deur al die deeg en laat dit mooi rys. So is dit met sonde. ’n Klein bietjie sonde in die gemeente krap die hele gemeente deurmekaar. Raak asseblief ontslae van al die verkeerde dinge wat in die gemeente soos suurdeeg werk. Snuffel elke sonde uit en gooi dit uit die gemeente uit soos die mense van ouds alle suurdeeg uit die huis uitgegooi het voor die paasfees. Die brood vir die paasfees moes sonder suurdeeg gebak gewees het. Wees daarom as gemeente soos vars brood wat sonder die suurdeeg van sonde gebak is. Dit is mos hoe julle eintlik is. Soos daar altyd ’n lammetjie geslag is om paasfees mee te hou, so is Jesus vir ons sonde doodgemaak. Alles is reg vir die fees in die gemeente, die brood en die Lam. Laat ons dan die fees hou. Maar om dit te hou moet daar niks van al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, soos ou suurdeeg in ons oorbly nie. Al wat vir die gemeente moet oorbly, is om skoon te leef en te doen wat reg is. In my vorige brief het ek julle gevra om weg te bly van mense af wat nie weet hoe om hulle behoorlik op seksuele gebied te gedra nie. Dit lyk my of julle my verkeerd verstaan het. Ek het nie gepraat van nie-Christene wat verkeerde dinge doen soos seksuele sonde, of wat net vir geld leef of met lieg en bedrieg ander uitbuit nie. Ek het nie mense bedoel wat in plaas van God allerhande ander goed aanbid nie. As ek van hulle gepraat het toe ek gesê het julle moet nie met sulke mense deurmekaar raak nie, sou dit mos beteken het dat ons op ’n ander planeet moes gaan bly. Wat ek eintlik bedoel het, is dit: julle moet julle nie ophou met iemand wat sê hy is ’n Christen, maar die teenoorgestelde doen nie. Dit is nou “kamma-Christene” wat soos nie-Christene leef deur seksueel skandelike dinge te doen, wat vir niemand behalwe hulleself omgee nie, wat meer lojaal teenoor ander dinge as teenoor die lewende God is, wat allerhande stories versprei wat ander mense baie seermaak, wat in niks anders as drank belangstel nie, of wat net daarop uit is om ander mense te kul en te bedrieg. Met so iemand moet jy niks te doen hê nie. Dit is nie my werk om oor nie-Christene se lewe skeidsregter te speel nie. God sal met daardie mense afreken. Maar julle moet verantwoordelikheid neem vir wat in julle gemeente aangaan. Die Skrif sê mos: “Raak ontslae van die mense onder julle wat nie reg lewe nie.” Vat julle mekaar regtig hof toe? Ek kan dit byna nie glo nie. Sê nou een van julle voel ’n mede-Christen het hom verkul en dat dit reggestel moet word. Hoekom hardloop julle hof toe waar ’n klomp ongelowiges wat niks van God en sy wil af weet nie, sal moet besluit wie van julle twee reg is? Het dit nie baie meer sin om na mede-Christene toe te gaan en saam met hulle die saak op te los nie? Het julle dan vergeet dat die mense van hierdie wêreld juis eendag voor God se kinders sal moet verskyn om die finale oordeel oor hulle te hoor? As julle dan eendag regters oor al die mense van hierdie wêreld gaan wees, dink julle nie dat julle mans genoeg behoort te wees om klein verskilletjies onder mekaar op te los nie? Ek wil dit nog sterker stel. Ons gaan selfs eendag die hemelse wesens oordeel. As dit so is, behoort ons regtig darem ook in staat te wees om vir die alledaagse probleme wat nou hier onder ons opduik, ’n goeie oplossing te vind. As julle dan met mekaar vassit, waarom hardloop julle na regters toe wat nie eens in die gemeente is nie? Hoe is dit moontlik om so ’n persoon te vertrou met wat reg of verkeerd is? Ek sê dit om julle ’n bietjie wakker te skud sodat julle kan sien wat julle besig is om te doen. Wil julle sowaar vir my sê dat daar nie ’n enkele persoon onder julle is wat verstandig genoeg is om julle te help om julle probleme onder mekaar op te los nie? Kyk net wat vang julle nou aan. Een Christen sleep ’n ander Christen voor die hof en dit nog voor mense wat glad nie in God glo nie. Wat sê julle nou eintlik met hierdie hofsake wat julle so teen mekaar voer? Julle sê eintlik dat julle ’n klomp verloorders is. Nie een van julle kan ’n wenner in so ’n saak wees nie. Hoekom is julle nie maar bereid om die minste te wees of selfs maar aan die kortste ent te trek ter wille van die groter saak van julle Christenskap nie? Maar kyk wat vang julle aan. Julle is die skuldiges. Dit is julle wat ander mense seermaak en aan die kortste ent laat trek deur verkeerde dinge aan hulle te doen. En dit doen julle nogal aan die mense wat saam met julle op die kerkbanke sit. Besef julle nie dat dit nie die manier is om julle te gedra nie? Iemand wat nie wil leef soos God dit wil hê nie, is nie welkom in sy nuwe wêreld nie. Moenie julleself om die bos lei nie. Mense wat seks misbruik, of wat seks met persone van dieselfde geslag het, mense wat hulle nie steur aan die reëls van die huwelik nie, wat agter allerhande valse gode aanloop en wat ander se goed vat, sal nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie. Die lysie gaan aan: dieselfde geld ook vir mense wat nooit genoeg kry nie en altyd net al hoe meer wil hê, wat drank hulle god gemaak het, wat net lieg en bedrieg vir eie gewin of wat dit geniet om lelik van ander te praat. Julle herken seker hierdie beskrywings, want daar was ’n klomp van julle wat voorheen so geleef het. Maar julle lewe het verander - God het die sonde soos vuilgoed van julle afgewas; Hy het julle spesiaal net Syne gemaak. Julle saak met God is nou heeltemal reg. Daarvoor het die Here Jesus Christus self gesorg saam met die Gees van ons God. ’n Mens kan redeneer: “Ek mag enigiets doen.” Maar al mag jy volgens die reëls iets doen, beteken dit nie dat dit vir jou geestelik goed is nie. Ek kan sê: “Ek mag enigiets doen,” maar dit beteken glad nie dat ek myself in ernstige moeilikheid gaan laat beland nie. Julle weet wat mense sê: “Eers eet jy om te leef en dan leef jy om te eet.” Vir God maak dit nie saak nie, want dit is nie wat belangrik is nie. Nie kos of die maag sal vir ewig hou nie. Vir een ding is ons liggaam nie bedoel nie en dit is om net instrumente vir seks te wees. Ons het ’n liggaam om die Here mee te dien en die Here sorg op sy beurt vir ons liggaam. God sal ons dooie liggaam eendag weer lewendig maak. Hy het gewys dat Hy sterk genoeg is om dit te doen toe Hy die Here weer lewendig gemaak het. Besef julle nie dat julle liggaam vir Jesus soos sy eie is nie? Sal ek dan die liggaam wat vir Jesus soos sy eie is, vat en by allerhande slegte vroue daarmee gaan slaap? Nooit aste nimmer nie. Iemand wat by ’n slegte vrou slaap, word eintlik self soos daardie slegte vrou - ’n mens sou kon sê dat hulle soos een mens word. Hulle sê mos: “As twee saamslaap, word hulle eintlik soos een mens.” Dit is op geestelike gebied ook waar. As ’n mens jouself vir die Here gee, word julle twee ook soos een. Dit gebeur natuurlik nie liggaamlik nie, maar geestelik. Maak dat julle wegkom van verkeerde seksuele dinge af. Bly daarvan weg. Allerhande ander sondes raak nie jou liggaam so direk nie. Maar as jy op seksuele gebied verkeerde dinge begin doen, is jou liggaam direk daarby betrokke. Die verkeerde dinge gebeur nie daar ver nie, maar in en met jou liggaam. Het julle dan vergeet dat julle liggaam die blyplek van die Heilige Gees self is? Die Gees bly mos in julle; God self het die Gees vir julle gegee. Dit beteken dat julle nie julle eie baas is nie en dat julle nie maar met julle liggaam kan doen wat julle wil nie. Die Here het baie duur betaal om julle Syne te maak. God moet dus ook trots kan wees op julle liggaam - daarvoor moet julle sorg deur die manier waarop julle julle gedra. Nou kom ek by die vrae in julle brief. Daar is niks mee verkeerd as iemand nie trou nie. Dit gee egter nie vir so iemand die groen lig om maar seksueel te leef soos hy wil nie. Die versoekings is maar groot. Seks is bedoel vir die huwelik en daarom is dit beter dat mense liewer trou en elkeen so sy eie maat het. Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied. Hou mekaar op seksuele gebied gelukkig, behalwe as julle saam besluit om ’n rukkie lank nie saam te verkeer nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur as julle ’n ruk lank op ’n spesiale manier op gebed wil konsentreer. Kom daarna weer saam. Moenie Satan ’n kans gee om julle uit te vang as julle selfbeheersing op ’n laagtepunt is nie. Ek is nie besig om julle te beveel wat om te doen nie. Dit is maar net goeie raad. Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry. Vir die mense wat nog nie getroud is nie en vir elke vrou wat haar man verloor het, het ek ’n spesiale boodskap: dit sal vir hulle goed wees om soos ek ongetroud te bly. Wanneer dit egter vir hulle moeilik word om hulle begeertes en emosies te beheer, moet hulle liewer maar trou. Ja, as hulle moet kies tussen trou en om heeltyd te veg teen hulle natuurlike seksuele begeertes, is die keuse eenvoudig: hulle moet trou. Bly getrou aan mekaar. Dit bring my by die getroudes. Ek het ook iets om vir hulle te sê. Dit is wat die Here self verwag: getroudes moet getroud bly en mag nie skei nie. As iemand klaar geskei is, moet hy nie weer met iemand anders trou nie. Die ander moontlikheid is natuurlik om weer na sy maat toe terug te gaan. [12-14] Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: as die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie. As ’n nie-Christen met ’n Christen getroud is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom. *** *** Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n groot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk? In alle geval, julle moenie dink dat as julle Christene word, God skielik julle omstandighede verander nie. Elkeen moet sy lewe leef op die plek waar God hom wil hê en daar doen wat God van hom vra. Dit verwag ek oral van al die Christene. Die mense onder julle wat besny is omdat hulle Jode is, hoef nie daaroor skaam te wees noudat hulle Christene geword het nie. As daar van julle is wat nie besny is nie, hoef julle dit ook nie te doen noudat julle Christene geword het nie. Dit maak niks saak of julle nou besny is of nie. Wat eintlik van belang is, is of julle luister na wat God van julle vra. Elkeen van julle moet doodgewoon met sy lewe aangaan, dáár waar hy was toe hy die stem van die Here gehoor het. As jy byvoorbeeld ’n slaaf was toe die Here se pad joune gekruis het, moet jy jou nie vreeslik daaroor bekommer dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jy ’n kans kry om vry te word, doen dit. As die Here jou roep as sy kind, is jy werklik vry, of jy nou in die gewone lewe ’n slaaf is of nie. Net so, as jy die Here se kind is, moet jy na Hom luister, of jy nou die belangrikste baas in die gewone lewe is of nie. Net soos iets wat jy gekoop het joune is, net so het die Here julle gekoop en boonop nog baie duur betaal ook. Moet nou nie so lewe asof julle aan mense behoort en asof julle alles moet doen wat hulle sê nie. My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle. Julle het ook nog vrae gehad oor die jongmense wat nie getroud is nie. Ook hieroor het die Here nie spesifiek gesê wat ons moet doen nie. Ek gaan maar weer sê wat ek daaroor dink. My opinie is mos nie niks werd nie. Deur die goedheid van die Here kan julle julle maar steur aan wat ek sê. Omdat dit vandag nie so maklik is om ’n Christen te wees nie, is dit beter om nie aan jou situasie te verander nie. Hou dit soos dit is. As jy getroud is, moet jy nie nou skielik wil skei nie. Net so moet jy, as jy ongetroud is, nie nou naarstig na ’n huweliksmaat begin soek nie. Dit beteken natuurlik nie dat as jy wel trou, jy nou ’n groot sonde doen nie. Maar een ding moet jy weet: as jy trou, sal dit net soveel swaarder vir jou wees in hierdie moeilike tye. Ek probeer julle dit maar net spaar. Laat ek dit so stel, my liewe vriende, daar is nie meer baie tyd oor voordat die Here weer kom nie. Die mense wat getroud is, moenie leef asof die huwelik al is wat hulle het om te doen nie, inteendeel. Iemand wat hartseer is, moenie net aan sy hartseer dink nie en wie bly is, moet hom nie daardeur laat voortsleep nie. Dieselfde geld vir jou houding as jy inkopies doen of jou met die alledaagse dinge besig hou. Jy moet nie toelaat dat jou lewe in hierdie soort dinge vasgroei nie. Hierdie wêreld met al die dinge wat ons ken, sal nie vir altyd hou nie. Die einde van die wêreld is naby. Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk. As ’n mens egter ’n gesin het, is dit anders. Dan moet jy tyd afstaan om jou gesin te versorg. Jy moet jou vrou gelukkig hou. Hierdie man moet dan aan baie dinge gelyk dink en dit verdeel sy aandag. ’n Ongetroude vrou kan haar ook lekker toespits op wat vir die Here belangrik is. Haar doel is om met alles wat sy het vir die Here te leef. ’n Getroude vrou kan dit nie doen nie. Sy moet na haar gesin kyk en haar man versorg. Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help. Ek wil graag hê dat julle volstoom vir die Here moet leef en doen wat reg is. Sê nou maar iemand is verloof en omdat hy baie tyd aan die Here se werk wil afstaan, kom hy jare lank nie tot trou nie. Dan begin hy die gevoel kry dat hulle maar moet trou omdat die meisie nie meer gelukkig is om vir so ’n lang tyd net verloof te bly nie. Hy moet gerus maar trou. Dit is nie sonde om dit te doen nie. As die persoon egter besluit het om nie met die meisie te trou nie, en dit pla hom nie om sonder ’n vrou te leef nie, doen hy die regte ding as hy nie trou nie. Laat ek dit so stel: as hy met die meisie trou, doen hy goed; as hy nie met die meisie trou nie, doen hy nog beter. ’n Vrou moet by haar man bly solank hy leef. As haar man egter oorlede is, kan sy trou met wie sy wil. Daar is net een voorwaarde: die nuwe man moet ’n kind van die Here wees. Persoonlik dink ek nog dat dit beter vir haar sal wees om nie weer te trou nie. Dit is nie net ’n persoonlike opinie nie, maar die Gees van God wat in my is, ondersteun my. Julle het mos ook in julle brief gevra of ’n mens kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Dit is waar wat julle sê: “Julle weet wat die kerk alles leer.” Maar as ’n mens dink jy weet so baie, kan dit jou te veel van jouself laat dink. Onthou egter, liefde blaas jou nie so op nie, maar bou liewer ander mense op. Boonop, iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af, weet baiekeer nie dít wat eintlik belangrik is nie. Maar as iemand God liefhet, is hy gedurig in God se gedagtes. Kom ons gesels nou daaroor of ’n Christen kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Ons almal weet tog dat afgode nie “regtig” is nie, want daar is net een ware God. Mense praat maklik van “gode” wat glo in die hemel of op die aarde is. So hoor ’n mens van baie verskillende “gode” en “here”. Ons weet egter dat daar net een God is. Alles het deur Hom ontstaan en ons leef net vir Hom. Daar is ook net een Here, naamlik Jesus Christus. Hy is die instrument waardeur alles gemaak is en aan wie ons ook ons bestaan te danke het. Nie al die Christene weet of besef dit nie. Daar is nog van julle Christene wat dink dat die afgode regtig bestaan. As hulle kos eet wat in die afgodstempels geoffer is, pla hulle gewete hulle nog meer as gewoonlik. Maar onthou, dit is nie kos wat ’n mens se verhouding met God sterker maak nie. Watter kos ons nou ook al eet of nie eet nie, dit sal ons nie ’n duim nader aan God of verder van Hom af bring nie. Maar vir een ding moet julle oppas. Moenie dat julle vryheid om te eet wat julle wil vir ander Christene ’n probleem word wat hulle Christenskap benadeel nie. Sê nou net iemand wat nog dink dat daar regtig afgode is, sien jou in die afgodstempel lekker sit en eet. Vir jou is dit natuurlik nie ’n probleem nie, want jy weet dat die kos jou verhouding met die Here nie kan beïnvloed nie. Dit sal die persoon wat nog dink dat afgode “regtig” is, aanmoedig om ook van die kos te eet, al voel hy dit is verkeerd omdat hy daarmee die afgode op ’n manier dien. Dié mede-Christen van jou se Christenskap word so eintlik deur jou beter godsdienstige kennis stukkend geskeur. En onthou, Jesus het vir hom gesterf. As jy jou mede-Christene so skade aandoen en dit vir hulle moeilik maak om werklik Christen te bly, is jy eintlik besig om Christus self seer te maak. Dus, as die kos wat ek eet my mede-Christen dinge laat doen wat nie reg is nie, sal ek nooit aste nimmer my mond weer aan sulke kos sit nie. So sal ek nie die oorsaak wees dat hy die verkeerde dinge doen nie. Kom ons gesels oor my gesag as iemand wat deur God gestuur is. Sou ek nie kon maak wat ek wou nie? Is ek nie iemand wat deur God gestuur is nie? Het ek nie ook vir Jesus, ons Here, van aangesig tot aangesig gesien nie? Is dit nie juis as gevolg van die goeie werk wat ek vir die Here gedoen het dat julle nou Christene is nie? Al dink ander dalk nie dat ek iemand is met ’n spesiale opdrag van God nie, moet julle ten minste darem so dink. Dat julle julleself vandag Christene kan noem, is die sigbare bewys daarvan dat ek spesiaal deur God gestuur is. Ek is nie bang om die mense wat my so kritiseer reg te help nie. Vir hulle het ek dit te sê: Mag ek nie by mense ’n bord kos of iets te drinke kry as ek onder hulle vir die Here werk nie? Het ek nie ook die reg om met ’n mede-Christen te trou en haar saam met my op my sendingreise te neem nie? Ander mense wat deur die Here gestuur is, doen dit, onder andere ook die broers van die Here en Sefas. Is dit net ek en Barnabas wat nie hulp van die gemeente mag kry nie, maar self vir ons brood en botter moet werk? Watter soldaat moet sy eie salaris betaal? Watter boer plant ’n klomp vrugtebome, maar mag nie van die vrugte eet nie? As iemand dag vir dag koeie oppas, sal julle mos nie weier dat hy ook van die melk proe nie. Hierdie voorbeelde ken ons uit die alledaagse lewe. Maar God wil dit ook so hê. Dit lees ons in sy wet. Moses het mos al geskryf: “Jy mag nie die bek van ’n bees toebind wat op die graanlande help nie.” Was God vreeslik bekommerd oor die beeste of wou Hy die gemeentes liewer ’n les leer oor hoe hulle die mense moet behandel wat vir hulle werk? Natuurlik gaan dit eerder oor ons. As mense hard saamwerk aan iets, moet elkeen mos ’n stukkie van die wins kry as dit verkoop word. As ek nou geestelik hard werk daar onder julle, is dit seker nie te veel gevra om darem so iets tasbaars van julle te kry om aan die lewe te bly nie. As julle voel dat julle mense wat geestelik onder julle werk so wil help, behoort julle ons nie eintlik voor in die ry te laat staan nie? Maar ons het liewer stilgebly as om vir julle te vra om ons te help om die pot aan die kook te hou. Ons wou nie hê dat enigiets wat ons doen mense moes afsit om na die wonderlike boodskap oor Christus te luister nie. Julle weet mos self dat die mense wat in die tempels werk genoeg kry om van te lewe by die mense wie se tempel dit is. Die Here het ook duidelik vir ons as Christene gesê wat ons moet doen. As ons vir mense van Jesus vertel, moet gelowiges ook sorg dat ons genoeg het om van te lewe. Ek het nooit by julle aangeklop om hulp nie, al kon ek. Nou moet julle ook nie dink dat ek dit nou met hierdie brief doen nie. Nee, ek sou liewer van honger doodgaan as om te sê dat ek vir julle van Jesus vertel het sodat ek geld of so iets by julle kon kry. Dat ek nie vir mense van Jesus vertel om geld in die hande te kry nie, is vir my baie belangrik. Dit maak my nie nou skielik baie goed nie. Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie. As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen. Maar wat kry ek dan nou vir al my moeite? Dit is vir my meer as genoeg om maar net die boodskap oor Jesus aan mense te vertel sonder om geld daarvoor te vra, al het ek die volste reg om te eis dat hulle vir my ook moet sorg. Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei. As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo. Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie, maak ek asof ek ook nie so ’n wet het om na te luister nie. Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet. Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Ek doen dit alles omdat die evangelie soveel vir my beteken. Wanneer die evangelie mense se lewe verander, doen dit net soveel aan my as aan hulle. Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd. Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie. Liewe vriende, kyk weer na wat in ons geskiedenis gebeur het en leer daaruit. Toe ons voorouers deur die woestyn getrek het, was hulle heeltyd onder ’n wolk. Hulle het ook deur die water van die see gegaan. Hulle het dus gedurig water om hulle gehad. ’n Mens sou dus kon sê dat hulle as Moses se volgelinge gedoop is deur die water van die wolk en die see. Net so het hulle almal van die kos geëet wat God spesiaal vir hulle gegee het en van die water gedrink wat God vir hulle uit die rots laat kom het. Eintlik sou ’n mens kon sê dat hulle ’n geestelike rots gehad het wat saam met hulle gegaan het en dat Christus die rots is. Al is hulle “gedoop” en al het hulle die geestelike kos geëet, was God nie tevrede met die manier waarop die meeste van hulle geleef het nie. Daarom is hulle in die woestyn dood sonder om in die Beloofde Land in te gaan. Laat dit wat met hulle gebeur het vir ons ’n voorbeeld en waarskuwing wees. Dieselfde gaan met ons gebeur as ons ook heeltyd net in die verkeerde dinge belangstel soos party van hulle. Los die afgode uit. Die verhaal is mos neergeskryf: “Die volk het lekker gesit en feesvier, maar toe het hulle sulke vieslike dinge begin doen wat op geen manier by ’n kind van God pas nie.” Ons moet oppas om ons nie so sleg te gedra soos party van hulle by daardie fees gedoen het nie. Kyk wat het met hulle gebeur: God het 23 000 van hulle op een dag laat doodgaan. Ons moet nie kyk hoe ver ons Christus kan tart voordat Hy sy geduld met ons verloor nie, soos sekere van ons voorouers gedoen het. Ons weet wat het toe met hulle gebeur: hulle is deur slange doodgebyt. Moet ook nie waag om te sê dat God ’n fout gemaak het nie, soos party van hulle gedoen het. God het die engel wat net verwoesting agterlaat na hulle toe gestuur, en nou is hulle dood. God het hulle ’n voorbeeld vir ons gemaak. Ons kan dus nie sê dat ons nie gewaarsku is nie. Dit staan lewensgroot in die Skrif geskryf vir ons wat in die tyd leef net voor die Here weer kom. In dié tyd sal dit nie met die Christene net goed gaan nie. Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie. Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het. Daarom, my liewe broers en susters, moet julle niks te doen hê met alles wat mense in die plek van die ware God aanbid nie. Julle is mos slim genoeg om self te besluit of wat ek sê waar is of nie. By die maaltyd van die Here sê ons mos altyd vir die Here baie dankie vir die beker. Is die beker waarvoor ons so dankie sê, nie juis vir ons ’n bewys dat die bloed van Jesus ook vir ons bedoel is nie? En as ons die brood eet, is dit nie ’n bewys van wat Jesus se liggaam alles vir ons beteken nie? Ons elkeen kry ’n klein stukkie van die een groot stuk brood. So deel baie mense een brood. Daarom vorm ons as gemeentelede ’n hegte eenheid as ons saam die nagmaalsbrood eet, al is ons baie verskillende mense. Kom ons gaan steek weer kers op by wat onder die Joodse volk gebeur. Mense wat ywerig alles doen wat hulle godsdiens van hulle vra, wil eintlik daarmee sê dat hulle die god van daardie godsdiens erken en dien, nie waar nie? Daarmee wil ek nie sê dat al die godsdienstige dinge wat mense vir ’n afgod doen nou skielik daardie afgod lewendig maak nie. Wat wel gebeur, is dat daardie mense eintlik alles vir duiwels doen, want hulle doen dit beslis nie vir God nie. En ek wil seker maak dat julle nie duiwels in plaas van God dien nie. ’n Mens kan nie aan die een kant die nagmaalsbeker drink en dan omdraai en by ’n afgodstempel instap en daar drink en doen soos jy wil nie. Net so min kan jy in die oggend saam met die Here aan sy nagmaalstafel sit en dan die middag saam met die demone gaan feesvier. Wat dink julle doen julle as julle met sulke dinge besig is? Dink julle miskien dat julle die Here jaloers kan maak of dat julle sterker is as Hy? As ’n mens byvoorbeeld vleis kry wat aan afgode geoffer is, sou die gelowige kon redeneer: “Ek mag alles doen.” Maar dan moet hy die tweede deel van hierdie sin onthou: “Nie alles is goed om te doen nie.” Dié wat so spog dat hulle alles mag doen, moet onthou dat dit wat ’n mens doen, vir ander mense ook iets moet beteken. Jy moet nie net altyd aan jouself dink nie. Jy hoef nie ’n “afgodstoets” te doen op kos wat jy koop nie. Jou gewete hoef jou ook nie te pla as jy dit nie gedoen het nie. Want onthou, “die hele aarde met elke ding daarop, klein of groot, is die Here s’n”. En dit bly so, al word die vleis kamma vir ’n afgod geoffer. As ’n nie-Christen jou uitnooi om by hom te kom eet en jy wil dit graag doen, eet wat hy jou gee om te eet. Moenie allerhande spoke opjaag deur te begin wonder of die kos dalk op die een of ander manier met afgode te doen het nie. Jou gewete hoef jou glad nie te pla nie. As die nie-Christen egter doelbewus vir jou sê dat daardie kos van sy afgode af kom, moet jy nie jou mond daaraan sit nie. As jy dit eet, sal dit die nie-Christen onder die indruk bring dat jy nie omgee om sy afgod te dien nie; dit sal dan sy gewete ry. Nou kan ’n mens natuurlik vra waarom ’n ander man se gewete vir my moet voorskryf wat ek mag doen en wat ek nie mag doen nie. As ek vir God dankie sê vir die kos en lekker eet, hoe kan iemand dan sê dat dit verkeerd is om die kos te eet? Deur daarvoor dankie te sê erken ek mos dat dit van God af kom. Laat ek dit so stel: alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is. Daarom mag julle niks doen wat ander mense seermaak of skade aandoen nie. Dit maak nie saak wie dit is nie - of hy ’n Christen is of nie en of jy van hom hou of nie. Dit is presies wat ek doen. Ek dink nie net aan myself nie, maar probeer om goed te wees vir ander mense. Ek doen nie goed wat hulle irriteer of afsit nie, sodat hulle ook deur my optrede die Here kan leer ken. In ’n neutedop: julle moet doen wat ek doen, net soos ek doen wat Christus doen. Dit is vir my lekker om te hoor dat julle my nie vergeet het nie, maar gedurig aan my dink en dat julle die dinge doen wat ek vir julle as Christene geleer het. Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. Elke man staan onder die gesag van Christus en die vrou onder die gesag van die man. Almal staan egter onder die gesag van God. As enigiemand met God of oor God praat sonder die nodige respek, respekteer hy ook nie vir Christus nie. Net so steek ’n vrou haar man in die skande as sy sonder respek vir haar man met of oor God praat. Dit is so goed sy mismaak haarself liederlik. Sy kan haar maar mismaak as sy nie, soos ons gebruik is, uit respek vir haar man iets op haar kop het nie. As sy dit nie wil doen nie, moet sy maar al haar hare afsny. Dit is ons gebruik; ’n vrou moet iets op haar kop hê as teken van haar respek vir haar man, maar ’n man moet dit juis nie doen nie, uit respek vir God. Iets van die grootheid van God moet in die man sigbaar word. As teken daarvan moet hy dus nie iets op sy kop sit nie. Deur die klere wat ’n vrou aantrek, moet sy weer iets van haar respek vir haar man wys. Julle vra waarom. Wel, God het mos nie die man uit die vrou gemaak nie, maar die vrou uit die man. Die man is nie gemaak omdat daar ’n vrou was nie, maar die vrou omdat daar ’n man was. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra om so te wys sy respekteer haar man. Selfs die hemelse wesens, die engele, sal dit kan sien. Noudat ons Christene is wat die Here dien, moet ons nie te veel argumenteer oor wie nou juis die belangrikste is, die man of die vrou, nie. Die man het die vrou nodig en die vrou die man. Dat dit so is, kan ons in die natuur sien. Net soos die eerste vrou uit die man geneem is, so word mans nou uit vroue gebore. Agter al hierdie dinge staan God self, want dit is Hy wat mans en vroue maak. Werk dit nou vir julleself uit: Is dit reg vir ’n vrou om met God te praat terwyl sy geen respek vir haar man het nie en dit wys deur nie ons gebruik te respekteer en iets op haar kop te sit nie? Sê julle gevoel nie ook vir julle dat ’n man wat lang hare dra hom belaglik maak, terwyl dit weer vir ’n vrou ’n pragtige versiering is nie? God het haar hare juis vir haar gegee om haar kop mooi toe te maak. As iemand nou hieroor wil stry, is my antwoord dat dit is hoe ons dinge doen. Nou bedoel ek nie net ons nie, maar al die ander Christene ook. Ek het nog iets om met julle te bespreek, maar dit is nie vir my so lekker nie, want hier is julle op die verkeerde pad en ek moet dit ongelukkig vir julle sê. As julle as gemeente bymekaarkom, bring dit die slegste in julle na vore in plaas van die beste. Ek hoor byvoorbeeld dat as julle veronderstel is om as gemeentelede saam te wees, julle groepe vorm wat elkeen sy eie ding doen. Soos ek julle ken, weet ek dat wat ek gehoor het nie sommer praatjies is nie. Die gedwarstrekkery is nie net sleg nie. Dit is ook goed, want so wys julle julle ware kleure. So kan ’n mens sien wie staan regtig aan die kant van God en wie nie. As julle bymekaarkom om saam nagmaal te hou, tree julle so lelik op dat ’n mens dit sowaar nooit “nagmaal” sal kan noem nie. Julle wag dan nie eens vir mekaar nie en deel ook nie julle kos wat elkeen saamgebring het met mekaar nie. Sonder om om te gee of jou medegelowige langs jou doodgaan van die honger, sal jy jou trommeldik eet en nog te veel wyn ook drink. Maar jy sal nie daaraan dink om vir hom langs jou ook ietsie aan te bied nie. Hoekom gaan jy dan nie maar liewer huis toe en gaan eet jou daar trommeldik en drink daar jou wyn alleen op nie? Is dit vir julle lekker om op hierdie manier die arm mense te verneder wat nie soveel kos soos julle rykes het nie? Wat verwag julle moet ek nou daarvan sê? Dink julle ek moet daaroor bly voel en julle vreeslik prys? So nooit aste nimmer nie. Kom ek verduidelik weer vir julle wat die Here self oor die nagmaal gesê het. Dit alles het die nag gebeur toe Jesus gevang is. ’n Rukkie voor Hy gevang is, het Hy saam met sy getrouste volgelinge geëet. Hy het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen, sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer as julle dit eet, moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.” Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.” Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here terugkom. As julle dit so doen, is dit so goed soos ’n preek vir almal om te sien wat die dood van die Here vir julle beteken. Dit beteken dat ’n mens nie sommer skouerophalend die nagmaal kan eet asof dit niks is nie. As jy dit op so ’n traak-my-nieagtige manier doen, is jy amper net soos daardie mense wat vir Jesus geslaan en gespot het toe Hy gekruisig is. Hulle het nie besef wat die dood van Jesus regtig vir mense beteken nie. Wil jy regtig soos hulle wees? Sekerlik nie. Kyk dan diep in jouself en soek na die redes hoekom jy die nagmaal eet. Toets jou gesindheid voor jy van die brood en die wyn vat. As jy die nagmaal gebruik, maar jy gee nie om vir wat die brood en wyn beteken nie, kan dit ernstige gevolge vir jou hê. Jy gee die Here dan alle rede om jou te straf. Wil julle ’n bewys hiervoor hê? Kyk net hoeveel van julle het nie meer behoorlik krag om uit die bed op te staan nie en ly aan allerhande siektes. Party is selfs al dood. Wees dus liewer strenger met julleself en maak mooi seker dat julle die nagmaal eet soos die Here dit bedoel het. Wie dit met die regte gesindheid doen, sal die Here geen rede gee om hom te straf nie. Die Here wys nou liewer vir ons dat Hy met ons ongelukkig is as ons verkeerde dinge doen. Deur slegte dinge met ons te laat gebeur help Hy ons ook reg sodat ons nie eendag dieselfde paadjie sal loop as die wêreld wat nie in Hom glo nie. Die Here gaan hulle almal met die finale oordeel hard straf. My liewe vriende, nou sal julle goed verstaan waarom ek julle vra om maar te wag tot almal daar is voor julle die nagmaal eet. As iemand dan so honger is dat hy nie kan wag nie, laat hy iets by die huis eet. As julle dan bymekaar is, sal die versoeking nie daar wees om iets verkeerds te doen nie en sal dit ook nie vir die Here nodig wees om julle te straf nie. Dit is nou vir eers genoeg hieroor. Wanneer ons mekaar weer sien, kan ons verder gesels oor al die ander goed waaroor julle nog onseker is. My liewe vriende, nou wil ek met julle praat oor die verskillende maniere waarop die Gees in ons werk. Dit is vir my baie belangrik dat julle dit mooi verstaan. Julle onthou mos nog wat met julle gebeur het toe julle die Here nog nie geken het nie. Die afgode het die een of ander mag oor julle gehad wat julle na hulle toe getrek het. En dit is dooie beelde wat nie eens kan praat nie. As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie. As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê. Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie. Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge. Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen. Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld: Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees. Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak. Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word. Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon. ’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly. Kom ons kyk wat ons hieruit oor julle as gemeente kan leer. Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is ’n lid van hierdie liggaam. Een lid van die gemeente is iemand vir wie die Here spesiaal gestuur het om sy boodskap te preek; ’n ander een moet in die gemeente self vertel wat die Here van die gemeente wil hê; dan is daar gemeentelede wat die ander moet touwys maak oor alles wat die Here ons geleer het; dan is daar mense wat spesiale kragtige dinge doen en ander vir wie die Here die krag gee om mense gesond te maak. Die Here het ook gesorg dat daar mense in die gemeente is wat ander kan help as hulle hulp nodig het. Party het weer die vermoë om te sorg dat die gemeentebedrywighede vlot verloop. Dan is daar ook mense in die gemeente wat “spesiale tale” praat. In die gemeente kan almal mos nie presies dieselfde ding doen nie. Almal kan mos nie preek of die ander gemeentelede leer nie. Wie is dan oor om te luister? Die hele gemeente kan mos nie net uit ’n klomp mense bestaan wat net kragtige dinge kan doen en mense gesond kan maak nie. Net so kan almal nie in “spesiale tale” praat of verduidelik wat met die “tale” gesê word nie. Wie gaan dan al die ander dinge doen wat in en deur die gemeente gedoen moet word? Daarom het verskillende lede van die gemeente verskillende dinge van die Here ontvang om te doen. Doen moeite met die gawes wat vir jou situasie die beste is. Maar nou wil ek vir julle van iets vertel wat vir elkeen van julle altyd die beste is. Sê nou maar ek is so “geestelik” dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog ’n klomp ander, maar ek het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie “geestelike gepraat” dan na niks anders nie as ’n geraas soos iemand wat teen ’n yster kap. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie, en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak. Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks. Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie; om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan mense gee, soos om God se Woord oor te dra of in “spesiale tale” te praat, of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal ’n tyd kom wanneer die Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie meer nodig sal wees nie. Ons weet in elk geval nou nie alles nie en wat ons vir julle van God se wil vertel, is ook nie alles wat daar is om te weet nie. Daar sal ’n tyd kom wanneer alles volmaak sal wees soos God dit bedoel het. Dan sal die dinge wat God net ’n tydjie wou gebruik het, nie meer nodig wees nie. Dit is eintlik maar so met ’n mens ook. Toe ek klein was, het ek nie soos ’n grootmens gepraat nie, maar soos ’n kind. Ek het ook gehou van dinge waarvan kinders hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan waaroor die grootmense praat nie, want ek het deur die oë van ’n kind na dinge gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit alles het verander. Die dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike kinderskoene. Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ’n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet. Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde. En van hulle staan die liefde boaan die lys. Gee alles om hierdie liefde in julle lewe te hê. Maar moenie van die spesiale geskenke vergeet wat die Gees vir julle gee nie. Gee jouself ook daarvoor, veral om God se boodskap vir die gemeente te bring. Ek weet daar is van julle wat baie daarvan dink om in “spesiale tale” te praat. Maar as iemand so praat, verstaan mense hom nie. God verstaan hom wel, want hy praat mos met God. Wat hy egter vir God sê, is vir mense net naklanke. Wat hy mos so onder die invloed van die Gees sê, is intieme dinge net tussen hom en God wat ander nie verstaan nie. Vergelyk dit nou met iemand wat in verstaanbare taal met mense oor die boodskap van God gesels. Mense verstaan dit en dit maak hulle geestelik baie sterker. Hulle skep moed vir wat voorlê en voel baie meer gerus. Maar as iemand in ’n “spesiale taal” in die gemeente praat, beteken dit eintlik net vir homself iets. As iemand God se boodskap vir die gemeente vertel, beteken dit vir die hele gemeente iets. Dit is nou nie dat ek sê julle moenie in spesiale tale praat nie. Ek gun dit vir elkeen. Wat ek wel sê, is dat julle eerder in die gemeente moet konsentreer op die bring van God se boodskap. In die gemeente is dit meer werd om die boodskap van God te bring as om in spesiale tale te praat, tensy daar iemand in die gemeente is wat kan verduidelik wat met die spesiale tale gesê word. So sal dit vir die gemeente iets kan beteken. My liewe, goeie vriende, stel julle nou voor dat ek daar by julle aankom en net in spesiale tale praat wat nie een van julle verstaan nie. Sal dit julle baie help? Ons almal weet dit sal nie. Wat wel vir julle baie kan beteken, is as ek met julle oor dinge gesels wat julle verstaan: dit kan dinge wees wat God spesiaal vir my gewys het, of raad oor hoe julle in moeilike situasies moet optree; of ons kan sommer maar net lekker sit en gesels oor wat God se boodskap vir ’n spesifieke situasie is, of ek kan julle miskien meer van Jesus leer. Dit is baie soos iemand wat sommer net op ’n fluit of ’n harp blaas. As hy nie mooi note speel nie, maar net ’n deurmekaar klomp geraas maak, sal niemand hulle daaraan steur nie. As ’n radio nie op ’n stasie gestel is nie en net ’n gekrap maak, sal jy mos nie kan verstaan wat daar oor die radio gesê word nie. Net so gaan dit in die gemeente. As jy ’n klomp geluide maak wat niemand verstaan nie, hoe sal enigiemand weet wat jy besig is om te sê? Vir die mense rondom jou is jy dan nie beter as daardie fluit of harp wat net ’n klomp geraas maak nie. Ek weet dat daar honderde verskillende tale in die wêreld gepraat word. Elkeen van hierdie tale het ook sin as ’n mens dit net kan verstaan. As ek egter nie die taal verstaan nie, weet ek ook nie wat die ander een wil sê nie. Daar is niks met die taal verkeerd nie, maar ek kan dit net nie verstaan nie. Die persoon kan praat en verduidelik tot hy blou word in die gesig, maar ons sal nie by mekaar uitkom nie. Dis presies wat in die gemeente gebeur as iemand in ’n spesiale taal praat wat niemand anders verstaan nie. Ek weet die spesiale geestelike geskenke wat God vir julle gee, is vir julle belangrik. Wees daarom opgewonde oor daardie geestelike geskenke wat vir ander ook iets beteken en die gemeente sterker kan maak. Iemand wat dan so ’n spesiale taal van die Gees gekry het om te praat, moet God vra om hom ook te help om te verstaan wat hy besig is om te sê. Ek het al baie ervaring daarvan. As ek in so ’n spesiale taal in gebed met God praat, is my gees nou betrokke, maar my verstand is afgeskakel - ek weet nie wat om te dink oor dit wat ek besig is om te sê nie, want ek verstaan nie wat gesê word nie. Hoe moet dit dan nou presies wees? Eintlik is die ideaal dat jy as mens heeltemal betrokke is, gees en verstand saam. As jy bid, moet jou gees bid, maar jy moet ook verstaan wat jy bid. As jy God loof deur te sing, moet dit uit jou gees borrel, maar so dat jy ook presies weet wat jy besig is om te sing. Dit is belangrik. Sê nou maar jy is daar in jou gees besig om allerhande mooi dinge van God te sê, hoe kan iemand wat niks verstaan wat jy sê nie saam met jou bid? Hoe kan hy die Here vra om dit wat jy besig is om te sê waar te laat word, as hy nie eens weet wat jy sê nie? Jy kan miskien voel dat wat jy in die gemeente doen, goed is en dat die Here ook daarvan hou, maar die mense wat saam met jou in die kerk sit, het niks daarvan nie. Vir hulle beteken dit net mooi niks. Ek sê vir God dankie dat ek meer in spesiale tale met Hom praat as julle almal saam. Ek is daarom nie teen die praat van spesiale tale nie. Maar as ’n mens darem in die kerk kom, verkies ek om liewer net vyf woorde te sê wat mense kan verstaan en wat iets vir hulle kan beteken as om die hele aand daar op my eie te staan en spesiale tale te praat. Liewe broers en susters, moet nou nie soos balhorige kinders wees wat nie na goeie raad wil luister nie. Druk wel julle ore toe as mense vir julle sê dat julle verkeerde dinge moet doen. Maar as dit by goeie dinge kom, spits julle ore en luister soos grootmense wat rede verstaan. Daar staan mos in die boek waarin ons van die wil van God leer, geskryf: “Mense sal kom met tale wat ons nog nooit gehoor het nie, vreemde mense sal met ons kom praat. Deur hierdie mense sal God met die volk praat, maar al doen God dit, sal hulle nog steeds nie luister na wat God sê nie.” Om so in spesiale tale te praat is in hierdie sin ’n bewys van God se krag vir mense wat nie glo nie, en nie vir Christene nie. Om die boodskap van God vir mense te verduidelik is weer bedoel vir Christene en nie vir ongelowiges nie. Kom ons wees realisties: sê nou die hele gemeente is bymekaar en almal praat tegelyk in spesiale tale. Dan kom daar iemand ingestap wat nie in Jesus glo nie en niks verstaan wat in die kerk aangaan nie. Wat dink julle sal hy sê? Wel, ek dink hy sal sê dit lyk vir hom na ’n groot deurmekaarspul. Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie? Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.” Wat moet dan nou gebeur as julle bymekaarkom? Wel, dit kan gebeur dat elkeen iets het om te doen. Die een wil ’n lied vir God sing, die ander een wil vertel wat hy van Jesus geleer het, ’n ander een het weer iets wat die Here hom spesiaal gewys het. Daar is miskien ook iemand wat in ’n spesiale taal wil praat of wat wil verduidelik wat met die spesiale taal gesê word. Onthou net, elke dingetjie wat gedoen word as die gemeente so saam is, moet krag in die gemeente inblaas. Die hele gemeente moet daardeur sterker gemaak word. Met ander woorde, as iemand in ’n spesiale taal praat, moet dit nie oordryf word nie. Net twee, of op die meeste drie, moet ’n kans kry, en nie almal gelyk nie. Elke keer moet daar iemand wees wat aan die ander kan verduidelik wat die persoon besig is om te sê. As daar nie iemand in die gemeente is wat die spesiale taal verstaan en kan verduidelik wat gesê word nie, moet die een stilbly wat in die spesiale taal wil praat. Hy moet dit maar tussen God en hom hou waar hy alleen is. Twee of drie mense aan wie God sy boodskap gegee het, moet aan die gemeente vertel wat God sê. Die res van die gemeente moet goed luister en versigtig opweeg wat gesê word. As die Here egter ’n spesiale boodskap vir iemand gee wat in die gemeente sit en luister, moet die een wat aan die praat is, eers stilbly. Almal vir wie die Here ’n boodskap gegee het om aan die gemeente te gee, moet ’n kans kry om dit te doen. So sal die hele gemeente van hulle kan leer en moed kan skep. Iemand wat iets van die Here af gekry het om te sê, moet sy kans afwag om dit te sê. God hou nie van ’n deurmekaarspul nie. Hy hou daarvan as dinge mooi en op hulle plek gebeur. Sorg dat dit in die gemeente so gaan. Nou wil ek met julle praat oor iets wat oral in die gemeentes gebeur. Vroue moet nie praat in gemeentebyeenkomste nie. Die wet van die Here gee vir ons riglyne wat hierdie dinge betref. Daar lees ’n mens dat vroue nie in die byeenkoms moet praat nie, maar dat hulle die gesag van die man daar moet erken. Dit is ons gebruik dat elkeen haar man by die huis moet gaan vra as sy iets wil weet. Dit is nie mooi dat die vrou dit sommer in die kerk vir haar man vra en so die erediens deurmekaarkrap nie. Is daar miskien party van julle wat voel dat julle dit nie wil doen nie? Dan moet julle julle afvra: Is die woord van God miskien deur julle geskryf sodat julle daaraan kan verander soos julle wil, of is dit God wat deur daardie woord met julle praat? ’n Persoon wat rondvertel dat hy God se boodskap vir ander kan vertel of dat die Heilige Gees hom lei, behoort ook dadelik te weet dat wat ek hier sê, is hoe die Here wil hê ons moet maak. As hy hom nie daaraan steur nie en maak of dit nie waar is nie, sal God hom ook nie kan gebruik nie. Laat ek saamvat: doen alles wat julle kan om vir mense van God se dinge te vertel. As daar ander is wat in spesiale tale wil praat, moet julle nie in hulle pad staan nie. Wat julle ook al doen, moet julle met smaak doen sodat alles nie in ’n deurmekaarspul ontaard nie. My liewe broers en susters, laat ons vir oulaas weer kyk na die goeie boodskap oor Jesus wat ek vir julle vertel het. Dit is die boodskap wat julle julle eie gemaak het en nou by sal staan of val. Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraaipaadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie. Soos ek die boodskap van ander gehoor het, het ek dit ook vir julle vertel. Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur. Petrus het Hom eerste gesien nadat Hy lewendig geword het en later het al twaalf sy getrouste volgelinge Hom gesien. Daarna het Hy aan 500 mense gelyk verskyn. Party van hulle is al dood, maar die meeste van hulle lewe nog. Jakobus het toe aan die beurt gekom en daarna die apostels. Heel laaste het Christus aan my verskyn, ek wat op heeltemal die verkeerde tyd gebore is en daarom lank op die verkeerde pad was. As dit by die apostels van die Here kom, staan ek agter in die ry. Eintlik behoort ek nie eens in daardie ry te staan nie, want kyk net hoe het ek die mense van God vroeër vervolg en probeer seermaak. Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie. Hy het my gemaak wat ek nou is. Hierdie goedheid van God was nie alles vir niks nie. Ek het harder en meer vir die Here gewerk as enige ander een. Dit was nie ek wat so goed was nie, maar die Here wat so goed vir my was. Hy het deur my gewerk. Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak. Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy. Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word. Die Skrif sê mos dat God Christus oor alles sal laat heers. As die Skrif oor “alles” praat, sluit dit natuurlik nie vir God self in nie. Wanneer die Seun oor alles heers en al die vyande van God uitgewis is, sal Hy Hom met alles wat Hy het onder die heerskappy van God kom stel. God sal dan oor alles regeer en almal sal Hom as Heerser erken. As dit nou waar was dat mense nie weer lewendig gemaak sal word nie, wat dan van die mense wat hulle laat doop sodat dié wat reeds dood is daarby kan baat? Vir wat doen hulle dit dan? Dieselfde geld vir ons: Hoekom leef ons as Christene swaar as ons nie oortuig is dat daar so iets soos ’n opstanding uit die dood is nie? My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het. Waarom sou ek hier in Efese as ’n sterflike mens soos ’n dier teen ander wilde diere geveg het as dit alles vir niks was nie? Dit maak mos nie sin nie. As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie, moet ’n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê: “Laat ons nou eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood.” Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo. Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie. Iemand onder julle wonder dalk: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?” Dis darem ’n dom vraag. Julle weet mos dat ’n saad wat jy in die grond saai ’n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ’n rukkie, kom die lewendige plantjie uit. En verder, as jy byvoorbeeld ’n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant die mieliepit. God besluit dan self hoe die plant moet lyk - elke soort saad gee mos ’n ander soort plant. Die diere en mense verskil net so. ’n Mens is mos anders gebou as ’n dier of ’n vis. Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ’n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi. Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word. Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie. Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots. Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam. Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het. My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie. Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. “Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.” Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak. My liewe broers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ’n duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, maak nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie. Ek wil ook nog ’n bietjie met julle praat oor die geld wat julle vir die Christene in Jerusalem bymekaargemaak het. Maak asseblief soos ek met die mense in Galasië gereël het. Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit, afhangende van wat hy daardie week verdien het. Spaar dit sodat ons nie ’n ekstra klomp geld hoef in te samel wanneer ek daar by julle aankom nie. Al wat dan nodig sal wees, is dat julle ’n paar persone moet aanwys om die geld na Jerusalem toe te vat. Ek sal vir hulle briewe saamgee sodat wanneer hulle in Jerusalem kom, die mense hulle vriendelik sal ontvang. As julle voel dat ek ook moet saamgaan, kan ons sommer saam reis. Ek moet in Noord-Griekeland ’n draai gaan maak. Daarna sal ek na julle toe kom. Ek gaan ’n rukkie daar by julle oorbly, miskien nog die hele winter. Dan kan julle my help met wat ek nodig het om verder te reis, waarheen dit ook al is. Ek wil hierdie keer nie net kom inloer nie, maar graag behoorlik by julle kom kuier. Dit is natuurlik as die Here wil. Ek wil graag hier in Efese bly tot na pinkster, want hier het ’n klomp goeie dinge gebeur wat ek nie so kan los nie - die Here het vir my wonderlike geleenthede gegee om vir mense van Hom te vertel. Daar is ook ’n klompie wat probeer keer dat ek vir die Here werk. Wanneer Timoteus daar opdaag, moet julle hom gasvry ontvang. Laat hom tuis voel en kyk mooi na hom, want hy werk hard vir die Here, net soos ek. Niemand moet hom verkleineer nie. Julle moet hom eerder help om sonder probleme in vrede te reis sodat hy weer na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers. Ek het mooi met Apollos gepraat en gevra dat hy saam met die ander broers na julle toe moet gaan. Hy kon egter nie nou gaan nie en daarom het hy nee gesê. Sodra hy kans kry, sal hy wel gaan. Wees wakker in die lewe en moenie toelaat dat iemand julle geestelik van balans af gooi nie, want julle glo mos. Moenie soos bangbroeke wees nie, maar staan julle man. Doen alles wat julle doen met liefde. Ek wil julle nog iets vra, my broers en susters. Julle onthou mos nog vir Stefanas. Hy en sy huisgesin was die eerste mense in Suid-Griekeland wat Christene geword het. Hulle was van die begin af meer as gewillig om mede-Christene te help waar hulle kan. Sulke mense se voorbeeld moet julle volg en almal wat saam met hulle vir die Here woel en werskaf. Ek was bly toe Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Dit het sommer baie gehelp vir my verlange na julle almal. Hulle het vir my net so baie beteken as vir julle. Sulke mense moet julle waardeer. Die gemeentes hier in Asië stuur vir julle groete. Akwila en Priscilla saam met almal wat in hulle huis bymekaarkom, stuur spesiaal vir julle as mede-Christene baie liefde. Al die gelowiges het my gevra om hulle groete oor te dra. Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit behoort te doen. Ek, Paulus, skryf hierdie laaste paar groetwoorde self. Mag die Here die persoon straf wat in liefdeloosheid die rug vir die Here draai. Kom, Here! Mag die Here vir julle baie goed wees. Ek sal altyd in liefde aan julle dink, want ons almal behoort aan Jesus. Van Paulus. Ek is deur Christus Jesus as ’n apostel aangestel. My aanstelling dra ook God se goedkeuring weg. Timoteus, een van my helpers en ons broer in die Here, stuur groete vir julle. Ek skryf aan almal van julle in die kerk in Korinte. Ja, en ook aan almal wat deel van God se kerk is in die res van die Romeinse provinsie Agaje. God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het. Net soos Christus vroeër gely het, ly ons nou ook. Ons kry regtig baie swaar omdat ons sy volgelinge is. Maar gelukkig oorlaai Christus ons elke dag met sy goedheid en met sy troos. Ek het al dikwels swaargekry omdat ek in Christus glo, maar Hy het my nog elke keer daardeur gehelp. Daarom kan ek julle nou troos wanneer julle swaarkry. Ek kan julle help om aan te hou glo. Wanneer ek God se troos ervaar, deel ek dit ook met julle terwyl julle dapper dieselfde soort lyding as ek ervaar. Natuurlik twyfel ek nie vir ’n enkele oomblik dat julle sal aanhou glo nie. Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang. Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie. Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak. Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is. Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie. Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid. In my briewe skryf ek oor sake wat julle maklik kan verstaan. Daarom glo ek julle sal verstaan dat julle baie trots op my kan wees wanneer ons almal saam op die laaste dag voor die Here Jesus staan. Natuurlik sal ek op daardie dag ook baie trots op julle wees. Gelukkig verstaan julle darem nou al so ’n ietsie van hierdie goeie nuus. Omdat ek so trots op julle is, het ek vroeër besluit om eerste na julle toe te kom voordat ek Masedonië toe gaan. Later op pad terug van daar af sou ek dan ’n tweede maal by julle kom oorbly het. So sou julle sommer twee keer deel kon hê in al die wonderlike hemelse geskenke wat God vir my gegee het. Boonop sou julle my tydens my tweede besoek kon help met al my voorbereidings vir my reis na Judea. Ongelukkig het hierdie planne toe nie so uitgewerk nie. Miskien dink julle by julleself: “Daardie Paulus sê een ding, maar doen iets anders. Hy belowe hy kom ons besoek, maar dan daag hy nie op nie.” Het ek sommer uit my eie hierdie besluite geneem, sonder om eers te vra wat God se wil is? Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle. Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat. Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak. God het ons almal saam stewig in Christus geanker. Hy is die fondament op wie ons lewe gebou is. God het ons ook met sy groot krag toegerus en ons eenkant gesit sodat ons Hom voltyds kan dien. Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort. Dit is die Heilige Gees. God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito, die eerste betaling van sy kant af om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag. Kom ek sê reguit vir julle hoekom ek besluit het om nie Korinte toe te kom nie. Weet julle, ek wou julle ’n groot stuk hartseer spaar. Regtig! God weet dit. Julle geloof is in elk geval mos nie van my besoek afhanklik nie. Dit is regtig nie my werk om oor julle baas te speel deur vir julle voor te skryf presies hoe julle moet glo nie. Al wat ek wil doen, is om te help dat julle geloof ’n nog groter vreugde word. Wat sou my besoek julle help as dit net hartseer en trane sou veroorsaak in plaas van vreugde? As my besoek julle net sou omkrap, wie sou my dan kon opbeur? Net julle! En dit sou nooit as te nimmer werk nie. Om van mense wat kwaad is te verwag om die een wat hulle omgekrap het te troos, is onmoontlik. Daarom het ek besluit om maar liewer ’n brief aan julle te skryf. Dit was die veiligste keuse. Op dié manier kon ek ten minste sorg dat ek nie deurloop onder julle klomp wie se plig dit eintlik is om my op te beur nie. In elk geval: ek is seker dat julle almal ook gelukkig is wanneer ek gelukkig is. En my keuse om aan julle te skryf eerder as om julle te kom besoek, maak my gelukkig. Moenie vir ’n enkele oomblik dink dat dit vir my maklik was om my vorige brief aan julle te skryf nie. My hart was regtig baie seer toe ek dit gedoen het. Onder baie pyn en trane het ek daardie brief na julle toe gestuur. Natuurlik wou ek julle nie omkrap nie. Julle moes juis in my brief agterkom hoe lief ek julle almal het. Ek moet ook met julle praat oor daardie man wat al die ongelukkigheid in julle kerk veroorsaak het. Hy het my voor almal beledig toe ek laas by julle was. Gelukkig het dit my nie omgekrap nie. Ek weet egter dat dit julle almal ontstel het - wel, ten minste die meeste van julle. Maar moenie julle verder bekommer nie. Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek. Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde. Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op. Ek het my vorige brief aan julle geskryf om te sien of julle hierdie toets kan slaag. Ek wou sien of julle regtig sal doen wat God van julle verwag. As julle bereid is om op God se pad te stap deur hierdie man te vergewe, sal ek dit ook doen. Eintlik het ek dit al klaar om julle onthalwe gedoen. Regtig. Ek jok nie. Christus weet dit. As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet. Toe ek in Troas aangekom het om die goeie nuus oor Christus aan die mense daar mee te deel, het die Here vir my ’n groot deur oopgemaak. Troas se inwoners het die evangelie met albei hande aangegryp. Tog was ek baie omgekrap omdat my getroue helper Titus nog nie daar was nie. Hy moes my daar ontmoet het om vir my te kom sê hoe julle op my vorige brief gereageer het. Ek het toe maar besluit om Masedonië toe te gaan om te kyk of ek hom daar kon raakloop. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons. Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ’n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van lewe af. Natuurlik is dit ’n groot verantwoordelikheid om Christus se aroma in hierdie wêreld te wees. Ek weet dat ek sy aroma is. “Hoe?” vra julle. Want ek probeer nie geld maak uit die woord van God soos party ander mense nie. Ek is eerlik en opreg. Omdat ek deur God self aangestel is en aan Christus behoort, kom alles wat ek sê van God af. Niks wat ek doen, steek ek ooit vir God weg nie. Klink dit of ek nou besig is om oor myself te spog? Nee! Ek probeer julle glad nie beïndruk nie. Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie. Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak. Deur sy goedheid help Christus my om al my vertroue in God te stel. Daarom probeer ek nooit om iets uit eie krag te doen nie. Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen. Hy het my aangestel as sy dienaar. Ek moet vir mense gaan vertel van die nuwe ooreenkoms wat God tussen Hom en ons almal tot stand gebring het. Hierdie ooreenkoms is nie met pen en papier geskryf nie. Nee, luister mooi: dit is deur die Gees in ons lewe oorgeskryf. ’n Ooreenkoms op papier bring in elk geval niks anders as die dood nie. Maar die Gees gee vir altyd lewe. Kom ek verduidelik met ’n voorbeeld wat ek bedoel. Julle weet mos dat al Moses se wette op klip uitgekap is. Toe hy dit daar op die berg ontvang het, het sy gesig so helder geblink dat die Israeliete hom nie in die oë kon kyk nie. Na ’n rukkie het die glans egter van sy gesig verdwyn. Hierdie wonderlike tydperk van die wet het nie daarin geslaag om mense by die ware lewe uit te bring nie. Maar dit was nogtans ’n ongelooflike tyd. Dink dan net hoe groot hierdie nuwe era van die Heilige Gees is. Daardie vorige era waarin die wet mense oor hulle sondes veroordeel het, was regtig ryk aan glorie. Wat sal ons dan sê oor die nuwe era waarin ons nou leef? Ons het nie genoeg woorde om dit mee te beskryf nie. Dit skitter absoluut met God se heerlikheid. Ons leef nou in die tyd waarin God mense uit sy goedheid van hulle sondes vryspreek omdat hulle in Hom glo. Die glans van die ou era is niks in vergelyking met hierdie nuwe tyd nie. Ek kan dit nie genoeg sê nie: as die era van die wet, wat natuurlik nou agter die rug is, met soveel glans gepaardgegaan het, hoeveel te meer sal hierdie nuwe era, wat vir altyd aanhou, met heerlikheid skitter! Omdat ek weet dat ek ook deel is van die splinternuwe era van die Heilige Gees, die era wat vir altyd sal aanhou, kry niks my onder nie. Gelukkig hoef ek nie soos Moses ’n sluier oor my gesig te trek nie. Julle onthou mos dat hy ’n sluier oor sy gesig gesit het sodat die Israeliete nie kon sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nadat hy die wet ontvang het nie. Maar hulle was blind vir dit wat God doen. Tot vandag toe gaan dit so met hulle. Wanneer die Israeliete na die wet van Moses luister daar waar hulle bymekaarkom om God te dien, begryp hulle steeds nie waaroor dit gaan nie. Daar hang nou nog ’n sluier oor hulle gesig. Net Christus kan dit wegvat. Dit is tragies dat die Israeliete tot vandag toe na die wet van Moses luister sonder dat hulle regtig God se werk verstaan. Ek sê weer: wanneer hulle hulle tot die Here bekeer, word hierdie sluier voor hulle gesig weggevat. Dán begryp hulle wie die Here regtig is. Die Here is Gees. Hy is ’n lewende werklikheid, en nie maar net Iemand wie se Naam in ’n wetboek geskryf staan nie. Oral waar die Gees van die Here aan die werk is, word mense regtig vrygemaak. Almal wat glo, is nou vry. Ons kan die Here se heerlikheid weerkaats sonder dat daar sluiers oor ons gesigte hang. Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê. God is baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy dienaar om die goeie nuus oor Christus te gaan oorvertel. Daarom kry probleme my nooit onder nie. Ek bly weg van al daardie lelike dinge wat mense in die geheim aanvang. Ek bedrieg nooit ander mense nie. En ek verdraai nie God se woord om by my eie sienings te pas nie. Inteendeel. Ek praat oop en bloot oor die waarheid. Mense kan daarom elke woord glo wat ek in die teenwoordigheid van God uitspreek. As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë. Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat. Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan. Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak. Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut. Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Die grootsheid en heerlikheid daarvan sal absoluut oorweldigend wees. Ons staar ons glad nie blind teen alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby. Ons oog is net op God se wêreld ingestel. Dit wat ons vandag sien, is in elk geval môre nie meer daar nie. Hier hou niks vir ewig nie. Al wat vir altyd sal bly bestaan, is God se nuwe wêreld. Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie. Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan. God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou. Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg. Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook. Terloops, ek sê dit nie om julle te probeer beïndruk nie. Nee, ek sê dit vir julle sodat julle op die regte manier op my trots kan wees. Dan het julle ten minste ’n antwoord vir daardie mense wat so maklik spog oor al die “groot dinge” wat hulle vir die Here doen. Vir hulle gaan dit net oor uiterlike suksesse, nie oor ’n mens se innerlike lewe nie. Ek het ook al groot geestelike ervarings gehad. Hierdie bonatuurlike ervarings, waarin ek in ’n ander staat van bestaan verkeer het, is egter iets tussen my en God. Ek wil nie daaroor praat nie. Wanneer ek in my normale staat van bestaan is, is dit ter wille van julle. Dan kan ek vir julle in gewone taal van God vertel. Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood. Ons behoort nou net aan Christus. Daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie. Nee, ons moet nou leef tot eer van Hom wat in ons plek doodgegaan het en deur God lewendig gemaak is. Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. Vroeër, toe ek nog nie ’n Christen was nie, het ek heeltemal verkeerd oor Christus gedink. Toe het ek glad nie in Hom geglo nie. Maar nou dink ek op die regte manier oor Hom. Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier! Dit alles is God se werk. Hy het die vyandskap tussen ons en Hom uit die pad gevat toe Christus aan die kruis dood is. God het my nou in sy diens geneem om vir mense te vertel van sy versoening. Deur Christus se sterwe het God vrede tussen Hom en die wêreld kom maak omdat Hy nie langer mense se sondes teen hulle hou nie. Dit is die goeie nuus wat ek nou oral bekendmaak. Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom. God praat deur my met julle almal. Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand. Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou herstel is. As God se medewerker en verteenwoordiger hier op aarde wil ek nou ’n ernstige versoek tot julle rig: moet asseblief nie die genade wat God aan julle bewys, ignoreer nie. Hoor net wat sê Hy in die Bybel: “Op presies die regte oomblik het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy My bitter nodig gehad het, het Ek jou gehelp.” Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers laat glip nie. Wat my eie werk betref: ek wil nie hê dat ander mense beswaar moet hê teen wat ek doen nie. Ek doen my bes om te keer dat so iets gebeur. Daarom vertel ek julle graag waaroor my werk en dié van my helpers presies gaan. Ons getuigskrif is dat ons in alle omstandighede op ons pos bly as God se diensknegte. Kyk net watter moeilike omstandighede moes ons al ter wille van ons geloof verduur: Ons lewens was al dikwels in gevaar. Ons is ook vervolg. Boonop moes ons groot krisisse in die gesig staar. Ons is geslaan en in tronke gestop. Mense het betogings teen ons gehou omdat ons vir hulle die goeie nuus gebring het. Ons moes hard werk om aan die lewe te bly. Baie nagte was ons sonder slaap en ons moes dikwels sonder kos klaarkom. Tog leef ons rein en opreg. Ons het die regte kennis oor God. Ons is geduldig en ons straal warmte en vriendelikheid uit. Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam. Ons het ander mense regtig lief, sonder dat ons enigiets in ruil van hulle terugverwag. Ons praat altyd die waarheid. Boonop tree ons op in die groot krag wat van God af kom. Ons is tot die tande toe bewapen vir ons taak. En ons wapens? Ja, natuurlik: die goeie nuus dat God sondaars vryspreek wat ons in staat stel om reg te leef. Met hierdie wapens in ons hande durf ons die wêreld aan. Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word. Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep. Ander kere weer is ons geprys en oorlaai met eer. Ons is ook al dikwels beskuldig dat ons leuens vertel. Tog praat ons net die waarheid. Baie mense maak asof hulle ons glad nie ken nie. Maar gelukkig ken God ons. Mense het ons al ’n hele paar keer vir dood afgeskryf. Maar kyk: ons lewe nog. Ons is aangerand en geslaan. Tog is ons nog hier. Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde. En armoede - ja, natuurlik weet ons ook wat dit is. Maar ons het al baie mense se lewe skatryk gemaak met die goeie nuus. Ons is regtig brandarm. Nie een van ons het ’n sent op ons naam nie, tog is ons skatryk. Ons werk immers vir God aan wie alles behoort en wat ons oorlaai met sy goedheid. Gelowiges van Korinte, ek praat nou reguit met julle. Ek doen dit omdat ek baie vir julle omgee. Dit lyk egter nie vir my of julle dieselfde teenoor my voel nie. Ek wil julle daarom baie mooi vra, julle wat my eie kinders is: gee asseblief weer vir my ’n plek in julle lewe. Moenie saam met die ongelowiges agter al wat sonde is, aanloop nie. Dan is julle kort voor lank saam met hulle slawe daarvan. Dink ’n bietjie, watter ooreenkoms is daar tussen reg en verkeerd? Of tussen lig en donker? Hulle lyk dan nie eens dieselfde nie. En wat het Christus met die duiwel te doen? Hy het mos nie nodig om die een of ander ooreenkoms met die Bose te sluit nie, of hoe? Wat van gelowiges en ongelowiges? Is hulle dieselfde? Nee, natuurlik nie. Of moet daar miskien ’n verstandhouding tussen die woonplek van God en die afgode gesluit word? Nooit nie! Ons wat glo, is die woonplek van die lewende God. Daarom sê God in die Bybel: “Ek sal by hulle bly. My adres is daar by hulle. Ek sal hulle God wees en hulle sal my kinders wees. Daarom moet julle padgee van die sondaars af. Julle moet My altyd dien,” sê die Here. “Laat staan alles wat met sonde besmet is, dan sal my hart en my hand wawyd oop wees vir julle. Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here. My liewe broers en susters, al hierdie beloftes is vir ons bedoel. Daarom moet ons nou dadelik elke verkeerde ding laat staan waarmee ons besig is. Ons moet alle onreinheid uit ons gedagtes verban. Eerbied vir God moet ons hele lewe vul. Ons moet met alles in ons daarna streef om volmaak te wees in ons toewyding aan God. Ons moet net doen wat Hy van ons vra. Julle kan my maar glo as ek sê dat ek nog nooit lelik teenoor iemand opgetree het nie. Ek het niemand uitgebuit of misbruik nie. Ek beskuldig julle ook nie daarvan dat julle sulke dinge gedoen het nie. Glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat julle heeltyd in my hart en in my gedagtes is. Kyk, of ek lewe en of ek doodgaan, julle sal altyd belangrik vir my bly. Daarom het ek die vrymoedigheid om so reguit met julle te praat. Julle kan my maar glo as ek sê ek is regtig trots op julle. Tussen al my swaarkry deur bring julle baie vreugde in my lewe. Julle onthou mos dat ek vroeër in die brief vir julle vertel het hoe ek van Troas af na Masedonië gegaan het, want ek het gehoop om Titus daar raak te loop. Toe ek daar aankom, het ’n klomp probleme op my gewag. Van buite het geweld my in die gesig gestaar en van binne het vrees my oorval. Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk. Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat toe Titus skielik daar opdaag. Hoe bly was ek toe Titus my vertel hoe julle hom met oop arms ontvang en hoe julle hom opgebeur het! Titus het my ook vertel dat julle na my verlang. En hy het bygevoeg dat julle jammer is oor alles wat vroeër tussen ons skeefgeloop het en dat julle oor my bekommerd is. Ek kan nie vir julle sê hoe bly ek was oor dié goeie nuus nie. Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe. Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan. Julle het glad nie enige skade as gevolg van my brief gely nie; inteendeel. Daaroor is ek regtig baie bly. Weet julle, die regte soort hartseer, die soort wat God vra, bring ’n mens altyd terug na Hom toe. Dit bring jou by die ware lewe uit. Niemand kan spyt wees wanneer so iets met hulle gebeur nie, of hoe? Aan die ander kant help dit niks as jy jou hartseer vir jouself hou en nie daarmee na God toe gaan nie. Dan is jy op pad na die doderyk toe met jou trane en al. Julle was op die regte manier hartseer, soos God dit wil hê. Julle was vasbeslote om die saak met Hom reg te maak. Kyk net watter wonderlike resultate het dit opgelewer: julle is nou nog meer daarop ingestel om julle verhouding met God reg te stel. Sonde vul julle met nog groter afsku. Julle wil niks daarmee te doen hê nie. Julle het ook baie groter eerbied vir God. Julle smag daarna om God beter te ken. Julle is nog yweriger om God met julle hele lewe te dien. Julle is meer as tevore bereid om verkeerde gedrag vas te vat. Julle het duidelik gewys dat julle onskuldig is in hierdie saak tussen my en daardie man wat my voor julle almal beledig het. Dit is hoekom ek aan julle geskryf het. Ek was nie te veel bekommerd oor daardie man wat my so sleg behandel het of oor my eie eer nie. Nee, my doel was om julle die geleentheid te bied om voor God te wys hoeveel julle regtig vir my omgee. Ek is so bly dat dit toe ook gebeur het. Ek kan nie genoeg sê hoe dankbaar ek oor julle reaksie is nie. Maar toe ek sien hoe opgewonde Titus oor julle is, was ek eers bly. Hy het met groot vrede in sy hart van julle af teruggekeer. Vroeër, voordat Titus na julle is, het ek so ’n bietjie oor julle by hom gespog. Gelukkig het julle my toe nie teleurgestel nie. Titus het self gesien dat alles wat ek oor julle vertel het, die reine waarheid is. Nou praat hy net die hele tyd oor julle. Sy liefde vir julle word by die dag groter. Julle toewyding het hom regtig baie beïndruk, so ook die respek en ontsag waarmee julle hom ontvang het. Ek is dankbaar dat julle my nie in die steek gelaat het nie. Dis lekker om te weet dat ek altyd op julle kan reken. My broers en susters, ek wil julle vertel hoe ongelooflik goed God is vir al die gemeentes daar in die provinsie Masedonië. Weet julle, die een groot krisis na die ander het hulle getref. Maar al hierdie ernstige terugslae en swaarkry het hulle blydskap nie ’n enkele oomblik gedemp nie. Hulle het heeltyd opgeruimd gebly. Hulle is ook verskriklik arm. Dit het egter nie gekeer dat hulle sommer ’n groot bedrag geld gegee het vir die kollekte wat ek op die oomblik vir die arm Christene in Judea insamel nie. Ek het met my eie oë gesien dat hulle soveel gegee het as wat hulle kon. Nee, hulle het baie meer gegee as wat hulle kon bekostig. Daardie Christene van Masedonië het my omtrent gesmeek om deel te kon hê aan hierdie hulpprojek. Hulle was so bekommerd oor die gelowiges in Judea dat hulle met alle mag en mening by hierdie geldinsameling betrokke wou raak. Ek het glad nie vir die Christene in Masedonië gevra om geld vir die kollekte te gee nie. Hulle het dit uit hulle eie gedoen. Omdat hulle hulle lewe volledig aan die Here gegee het, was dit baie maklik vir hulle om hulle geld tot my beskikking te stel. So het hulle presies volgens God se wil opgetree. Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi. Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het. Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom. Ek probeer nie aan julle voorskryf wat julle moet doen nie. Glad nie. Ek vertel julle slegs hoe toegewyd ander gemeentes aan die Here is en hoeveel hulle omgee vir ander gelowiges wat swaarkry. Dalk beweeg dit julle om net soos hulle te maak. Julle reaksie sal wys of julle liefde vir die Here en vir ander mense eg is, en of dit net lippetaal is. Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is. Al die eer en glorie in die hemel behoort aan Hom. Tog het Hy hierdie hemelse rykdom ter wille van julle opgeoffer toe Hy in julle plek aan die kruis dood is. Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak. Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is deur julle besittings met ander gelowiges te deel. Ek wil julle gou ’n stukkie goeie raad gee. Onthou julle hoe julle ’n jaar gelede besluit het om by die geldinsameling vir Jerusalem betrokke te raak? Ek onthou nog baie goed hoe ywerig julle toe begin geld insamel het. Handel hierdie geldinsameling asseblief nou af. Sit weer geld daarvoor opsy. Doen dit met dieselfde geesdrif waarmee julle verlede jaar begin het. Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly. Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie. Daar moet ewewig in die kerk wees wanneer gelowiges mekaar geldelik help. Dit moet só gedoen word: julle wat nou genoeg geld het, moet daardie Christene help wat te min geld het. Later, wanneer julle weer te min geld het, moet hulle julle kom uithelp. So kom daar ewewig. Dit is presies wat die Bybel sê: “Hy wat baie besit, het nie te veel nie. Hy wat ’n bietjie besit, het nie te min nie.” Ek is baie dankbaar teenoor God omdat Hy Titus so ywerig gemaak het om julle te kom help. Hy is net so ywerig soos ek self. Ek het Titus vroeër aangemoedig om weer na julle toe te gaan, maar hy het sommer self besluit om na julle toe te gaan omdat hy so baie vir julle omgee. Ek stuur nog iemand saam met Titus na julle toe. Hy is baie bekend in al die gemeentes omdat hy so hard werk in diens van die evangelie. Die ander gemeentes wat geld vir hierdie fonds insamel, het hom aangewys om saam met ons Jerusalem toe te gaan. Daar gaan ons die kollekte aan die gelowiges oorhandig. Deur hierdie liefdeswerk wil ons die Here se Naam grootmaak. Dis ons enigste doel. Daarom doen ons ons bes om die geld reg te administreer sodat niemand ons goeie naam in twyfel trek nie. Tot dusver het ons al ’n groot bedrag geld vir Jerusalem ingesamel. Ons kan nie bekostig dat iemand ons nou daarvan verdink dat ons hierdie geld misbruik wat die gelowiges aan ons toevertrou het nie. Dit is vir ons belangrik dat ons optrede altyd reg moet wees, in die oë van God én in die oë van ander mense. Daarom stuur ons nog ’n ander broer saam met Titus na julle toe. Hy het al baie kere bewys dat hy betroubaar is. Niemand twyfel oor sy goeie naam nie. Hy wil julle ook graag kom help. Vandat hy gehoor het hoe toegewyd julle is, is hy eers ywerig om na julle toe te kom. Wat Titus betref: wel, julle weet mos dat hy al lankal saam met my werk om die goeie nuus uit te dra; ook tot daar by julle. Die twee broers wat saam met hom na julle toe kom, is verteenwoordigers van die verskillende gemeentes. Hulle almal glo in Christus. Hulle weerkaats ook sy heerlikheid. Wys asseblief vir hulle dat julle hulle ook liefhet. Ontvang hulle soos julle eie broers. Ek het vir al die gemeentes vertel hoeveel julle vir ander mense omgee. Laat hierdie afgevaardigdes dit asseblief nou met hulle eie oë sien. Eintlik hoef ek glad nie aan julle te skryf oor die kollekte waarmee ons die gelowiges in Jerusalem wil dien nie. Ek weet mos hoe graag julle daarby wil inskakel. Daarom het ek oral by die gelowiges in Masedonië oor julle gespog. “Die gelowiges in die provinsie Agaje is al sedert verlede jaar betrokke by hierdie projek,” het ek vir hulle almal vertel. Julle ywer het teen hierdie tyd al die ander gelowiges ook aangesteek. Ek stuur nou hierdie broers na julle toe sodat my spoggery oor julle nie net ’n klomp leë woorde sal bly nie. Ek het vir hulle gesê dat julle bydraes gereed sal wees as hulle daar aankom. Sorg asseblief dat dit so is. Moenie my nou in die steek laat nie. Dink net hoe skaam julle sal kry as ek later self daar by julle opdaag (saam met die afgevaardigdes van Masedonië) en ek dan moet uitvind dat julle toe nooit die nodige fondse bymekaargemaak het nie. Dan sal my vertroue in julle sommer ’n ernstige knou kry. Om seker te maak dat die insameling van die kollekte daar by julle glad verloop, het ek besluit om hierdie broers solank na julle toe te stuur. Hulle sal julle kom help om julle offer vir Jerusalem betyds gereed te kry. Julle het immers al lankal belowe dat julle dit sal gee. Maar dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie. Ek gaan nie aan julle voorskryf hoeveel julle moet gee nie, maar ek gee wel vir julle die volgende riglyn: ’n boer wat min plant, kry ’n klein oes, en ’n boer wat baie plant, kry ’n groot oes. Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee. God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê: “Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.” God is baie goed vir ons almal. Hy sorg dat daar elke jaar goeie oeste op die lande is en dat daar altyd genoeg brood op die tafel is om te eet. Net so sal Hy ook vir julle die regte soort saad gee om te saai en sorg dat dit baie vrug dra. Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef. God sal sorg dat julle altyd meer as genoeg het om van te leef. Hy maak julle ryk genoeg om altyd vrygewig te wees. Daarom sal julle geldelike bydraes, wat ons binnekort na die gelowiges in Jerusalem neem, tot gevolg hê dat daar sommer baie dankgebede na God toe opgestuur word. Weet julle, hierdie geldelike offers waarmee julle die gelowiges in Jerusalem dien, gaan nie net help om hulle armoede te verlig nie. Dit natuurlik ook, maar julle bydraes sal maak dat God regtig gedank word. Wanneer die gelowiges in Jerusalem sien dat julle bereid is om hulle met julle geld te dien, sal hulle God eer omdat julle so gehoorsaam is aan Christus. Hulle sal sien julle geloof is nie net lippetaal nie. Hulle sal God loof omdat julle so ’n groot klomp geld gee aan hulle en aan ander wat swaarkry om te wys dat julle een is voor God. As bewys dat hulle ook vir julle omgee, sal daardie gelowiges vir julle bid en vir God dankie sê omdat Hy so ongelooflik goed is vir julle. Prys God vir sy ongelooflike groot geskenk aan ons almal! Ek wil nou ernstig met julle praat. Maar ek doen dit in die gesindheid van Christus, Hy wat nederig en vol deernis teenoor almal is. Daar by julle word mos gesê: “Paulus is so mak soos ’n lammetjie wanneer hy hier is. Maar wanneer hy weg is, is hy verskriklik kwaai in sy briewe.” Nou vra ek julle baie mooi: moet asseblief nie maak dat ek regtig kwaai is wanneer ek binnekort na julle toe kom nie. Daardie mense wat vir almal vertel dat ek nie volgens God se wil leef nie, moet veral lig loop. Ek sal nie twee maal dink om hulle voor almal vas te vat oor hulle leuens nie. Natuurlik is ons net doodgewone mense, maar ons leef glad nie volgens die reëls van hierdie wêreld nie. Nee, ons is in ’n voltydse oorlog gewikkel om die goeie nuus uit te dra. Maar ons wapens is nie mensgemaakte wapens nie. Gelukkig nie! Ons staan in die Here se diens; daarom kry ons al ons wapens by Hom. Daarmee vernietig ons alles wat in die pad van die goeie nuus staan, selfs die heel sterkste vestings van die vyand. Met hierdie wapens vernietig ons elke vals argument. Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê. Omdat ons tot die tande toe gewapen is, staan ons gereed om elke stukkie ongehoorsaamheid te straf en daarmee af te reken. En ons gaan dit ook daar by julle kom doen sodra julle geleer het om regtig na die Here te luister. Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle. Miskien het ek vroeër ’n bietjie te veel gespog oor die gesag wat die Here aan my gegee het. Maar ek hoef regtig nie daaroor verleë voor julle te staan nie. Die Here het my immers aangestel om julle geloof op te bou. En dit doen ek ook. Ek is nie soos daardie spul vals leraars wat net daarop uit is om julle geloof af te breek nie. Daarom is ek regtig nie skaam oor my optrede nie. Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle dat ek julle met my briewe probeer bangmaak. Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie. Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens. Die mense wat hierdie stories versprei, moet weet dat ek altyd dieselfde is, of ek nou ’n brief aan julle skryf en of ek in lewende lywe daar by julle is. Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle eie prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ’n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom. Ek sal nooit waag om so iets te doen nie. Ek praat net oor die werk wat God my gegee het om te doen, oor niks anders nie. Hy het my aangestel om die goeie nuus met ander mense te deel, ook met julle. Ek werk slegs binne hierdie werksterrein waaroor God my aangestel het. En julle val ook binne my werksterrein. Daarom kan niemand my daarvan beskuldig dat ek in iemand anders se terrein in Korinte kom inmeng het nie. Ek glo vas dat, soos julle geloof sterker word, ek sommer nog ’n baie groter werksterrein daar by julle gaan hê. Want ek wil die goeie nuus nog tot ver anderkant Korinte se grense vir mense gaan vertel. God het daardie gebiede ook afgebaken as deel van my werksterrein. Ook daar sal ek nie in ander mense se werksterrein inmeng nie. Die Bybel sê: “As jy wil spog, spog dan oor wat die Here doen.” Al jou eie groot dade waarmee jy so graag spog, tel in elk geval nie voor God nie. Nee, al wat saak maak, is dat God met jou lewe tevrede is. Sy goedkeuring is al waarvoor jy moet leef. Ek wil julle nou iets snaaks vra. Sal julle omgee as ek my vir ’n rukkie soos ’n dwaas gedra? Net so ’n paar oomblikke? Julle weet ek gee verskriklik baie om vir julle. Met ’n ywer wat van God af kom, wil ek julle oppas en beskerm. Ja, ek het as’t ware die verlowing tussen julle en Christus gereël. Daarom is dit ook my plig om julle eendag soos ’n bruid aan Christus af te gee. En ek wil julle soos ’n jongmeisie wat nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad het nie, na haar bruidegom toe vat. Skoon en rein. Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie. Julle gee my slapelose nagte! Julle glo elkeen wat deesdae daar by julle kom preek, ook al praat hulle oor heeltemal ’n ander Jesus as ek. Dit maak nie vir julle saak of hulle ’n ander evangelie na julle toe bring as die een wat julle by my gehoor het, en of hulle oor ’n ander gees met julle praat as die Een oor wie ek praat nie, julle eet dit alles vir soetkoek op! Op die oomblik tree daar juis sulke mense by julle op. Kom ek sê sommer reguit vir julle dat daardie sogenaamde wonderlike apostels nie so belangrik is as wat hulle julle probeer wysmaak nie. Ek staan nie ’n enkele tree vir hulle terug nie. Selfs al is ek nie so glad met my mond soos hulle nie, weet ek baie goed hoe God se raadsplan werk. Dit het julle tog gehoor toe ek daar by julle was. Ek vra my af of ek nie ’n groot fout gemaak het toe ek die goeie nuus oor God daar by julle kom bekendmaak het nie. Ek het julle soos ’n slaaf gedien sodat julle al die eer kon kry. Ek wou nie ’n sent van julle hê nie. Ander gemeentes moes vir my sorg. Ek het as’t ware die kos uit hulle mond gevat sodat ek julle met die goeie nuus kon bedien. Ek onthou nog die keer toe ek nie ’n sent op my naam gehad het nie. Maar nie eens toe het ek dit gewaag om julle te vra om my te help nie. Nee, ’n groepie Christene uit Masedonië het my uit my geldelike verknorsing kom help. Ek was nog nooit ’n geldelike las vir julle nie. So sal dit in die toekoms ook bly. Ek is baie trots daarop dat ek nie julle geld wil hê nie; Christus weet dit. Niemand daar by julle in die provinsie Agaje sal my oortuig om anders hieroor te dink nie. Weet julle hoekom ek nie julle geld wil vat nie? Wel, omdat ek verskriklik baie vir julle omgee. God weet dit. Daarom wil ek vry wees om julle met die goeie nuus te dien sonder dat ek julle weer iets skuld indien ek julle geld sou vat. Wat my werkswyse betref: ek is glad nie van plan om die manier waarop ek vir die Here werk te verander nie. Ek sal daardie spul wat nou by julle optree se vals motiewe ontmasker. Hulle vertel glo vir julle dat hulle ook apostels is, net soos ek. Maar hulle is ’n spul leuenaars wat net maak asof hulle deur Christus as sy apostels aangestel is. Ook g’n wonder nie. Satan doen die hele tyd sulke bedrieglike dinge. Wanneer dit hom pas, verander hy hom selfs in ’n engel van die lig. Daarom moet julle glad nie verbaas wees wanneer mense wat vir hom werk presies dieselfde doen nie. Hulle maak maar net asof hulle doen wat God vra. Daar wag groot probleme op sulke mense. Hulle sal die straf kry wat hulle verdien. Onthou julle dat ek julle vroeër gevra het om my nie te gou as ’n dwaas af te skryf nie? Of anders, doen dit tog maar sodat ek ook ’n bietjie kan spog. Wat ek nou sê, sê ek natuurlik nie met die gesag van die Here agter my nie. Nee, ek doen dit as ’n dwaas, en met die selfvertroue van ’n dwaas. Omdat so baie mense oor wêreldse dinge spog, gaan ek nou dieselfde doen. In elk geval, julle wat mos so verskriklik slim is, het glad nie ’n probleem om na dwase te luister nie, of hoe? Julle hou mos daarvan as mense julle slawe maak van allerhande verkeerde leringe wat hulle in julle kele afdruk. Julle gee ook nie om as hulle julle geld vat met hulle vroom praatjies nie. Dis skynbaar ook nie vir julle ’n probleem dat hulle julle vir hulle eie gewin misbruik nie, of dat hulle op julle neersien en julle soos vloerlappe behandel nie. Ek moet nou maar teenoor julle erken dat ek veels te swak is vir sulke behandeling. Ek sal dit nie vat as ander mense sulke dinge aan my doen nie. Julle hou ook baie daarvan as mense spog met al die groot dinge wat hulle vir die Here doen. Daarom doen ek dit nou ook. (Onthou tog net, dit is “die dwaas” wat nou aan die woord is.) Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook. Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig! Ek het harder gewerk as al daardie mense. Male sonder tal is ek in die tronk gegooi. Ek is meer kere geslaan as wat ek kan onthou. Dikwels het my lewe aan ’n draadjie gehang. Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike 39 houe te slaan. Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek was, gesink. ’n Ander keer moes ek ’n hele dag en nag op die oop see ronddryf. Ek het ook al die wêreld vol gereis. En ek moes al ’n groot klomp gevare trotseer: vol riviere; rowers wat my wou aanrand; my eie volksgenote en ander mense wat nie aan Israel behoort nie wat my prediking verwerp het; gevare in die stede en in woestyne; storms op die see en vals gelowiges wat my in die steek gelaat het. Ek moes ook baie hard werk. Baie nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dikwels het ek niks gehad om te eet of te drink nie. Kos was maar altyd ’n skaarste. Ek het ook nie altyd genoeg warm klere gehad om my teen die koue te beskerm nie. Asof dit nie genoeg is nie, moet ek ook nog elke dag ’n groot klomp krisisse hanteer. Die verskillende gemeentes se probleme lê swaar op my hart. Wanneer party gelowiges wil tou opgooi, voel ek hulle pyn aan my eie lyf. En wanneer hulle in die sonde val, voel dit vir my asof ek self deur die vuur stap. As ek dan nou oor myself moet spog, sal ek liewer oor al my swakhede spog. Ek lieg nie as ek al hierdie dinge vir julle sê nie. Ons wonderlike God weet dit. Hy is die Vader van ons Here Jesus. Sy Naam moet vir altyd grootgemaak word. O ja, toe ek vroeër in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas sy soldate beveel om die stad op te pas sodat ek nie kon ontsnap nie. Toe het die gelowiges my in ’n mandjie versteek en deur ’n venster in die stadsmuur laat afsak. So het ek daarin geslaag om te ontsnap. Dit help nie om te spog soos ek nou maak nie. Daarom doen ek dit heeltemal teen my sin. Maar omdat ek in elk geval nou daarmee besig is, kan ek net sowel met julle praat oor die visioene en openbarings wat die Here my laat beleef het. Kom ek vertel julle gou van ’n ander man wat ook aan Christus behoort (onthou dit is steeds ek, “die dwaas”, wat aan die woord is). [3-4] Wel, daardie ander man is veertien jaar gelede op ’n dag skielik tot in die hoogste hemel weggevoer. Ek weet nie of hy met sy liggaam en al, of sonder ’n liggaam, in die hemel in is nie. Net God weet. Hierdie man is reguit na God se woonplek toe gevat. Daar het hy dinge gehoor wat hy nie mag oorvertel nie. *** Wel, ek sal net oor daardie “ander Paulus” spog, maar nie oor myself nie. Al waaroor ek, “die dwaas”, kan spog, is oor my swakhede en probleme. As ek dit wel sou waag om ’n bietjie oor myself te praat, sal ek nie regtig ’n gek van myself maak nie, want alles wat ek sê, is die reine waarheid. Maar ek het besluit om dit nie te doen nie. Netnou dink mense dat ek verskriklik belangrik is as ek heeltyd net oor my groot geestelike ervarings praat. En dit is tog nie waaroor ons geloof gaan nie. Al wat julle eintlik oor my hoef te weet, is dit wat julle my sien doen en dit wat julle oor my werk as apostel hoor. Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ’n groot struikelblok oor my pad gestuur. Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan. Hierdie struikelblok moes keer dat ek verwaand raak oor al die wonderlike geestelike ervarings wat ek al beleef het. Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek. Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.” Na hierdie antwoord van die Here het hierdie doring in my vel skielik die krag in my lewe geword. Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is. Van toe af kon ek selfs spog oor hoe swaar dit met my gaan sodat Christus die enigste kragbron van my lewe kan wees. Weet julle, ek is glad nie meer omgekrap oor my swakhede en probleme nie. Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se groot krag staat te maak. Ja, ek het toe soos ’n dwaas oor myself gaan staan en praat. Maar julle het my gedwing om dit te doen. Dit sou nie nodig gewees het as julle my goeie naam beskerm het voor daardie danige apostels wat nou in Korinte is nie. Al dink hulle dat hulle verskriklik belangrik is, staan ek nie ’n enkele tree terug vir hulle nie. Natuurlik is ek glad nie iets besonders nie. Ek is net ’n doodgewone mens. Tog het ek alles gedoen wat van my as God se apostel verwag word. Toe ek daar by julle was, het ek groot tekens en wonders en kragtige dade gedoen. Dit is mos wat julle van ’n apostel verwag, of hoe? Sê my, het ek julle al ooit afgeskeep? Het ek julle slegter behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek geweier het om julle geld te aanvaar? Vergeef my tog dat ek julle hierdie verskriklike “onreg” aangedoen het. Ek staan nou op die punt om julle ’n derde maal te kom besoek. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is nie van plan om hierdie keer julle geld te kom vat nie. Ek wil niks van julle hê nie, behalwe natuurlik dat julle voluit vir die Here moet lewe. Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg lewe. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het. Ek is so lief vir julle dat ek bereid is om alles wat ek het weg te gee vir julle. Ja, ek sal selfs my eie lewe vir julle opoffer. Daarom kan ek nie verstaan hoekom julle my al hoe minder liefhet terwyl ek julle al hoe meer liefhet nie. Julle stem teen hierdie tyd hopelik saam dat ek nog nooit enige geldelike las vir julle was nie. Maar miskien dink julle dat dit ’n skelmstreek van my kant af is. Dalk sê julle onder mekaar dat ek julle geld met ’n ompad in die hande probeer kry deur een van my helpers wat ek na julle toe gestuur het. Wel, dit is glad nie waar nie. Om seker te maak dat alles reg verloop, het ek juis vir Titus en die verteenwoordiger van al die gemeentes na julle toe gestuur. Het hulle julle dalk te kort gedoen? Natuurlik nie! Net soos hulle het ek julle ook nie probeer verkul nie. Ons drie praat immers dieselfde taal. Ek hoop nie julle dink al die tyd dat ek besig is om myself voor julle te verdedig nie. God is die enigste regter oor my lewe. Omdat ek aan Christus behoort, sal God alleen oor my lewe besluit. Maar julle kan van een ding seker wees, my liewe broers en susters: alles wat ek sê en doen, is daarop gerig om julle geloof sterk te maak. Ek is bekommerd dat my volgende besoek aan julle dalk nie so goed sal afloop as wat ek hoop nie. Ek is bang dat wanneer ek in Korinte aankom, ek sal agterkom dat julle nie leef soos volgelinge van Christus behoort te leef nie. Ja, en miskien is julle dan ook teleurgesteld in my omdat ek nie voldoen aan julle verwagtings van hoe ’n apostel moet optree nie. Dan is al ons harde werk daarmee heen. ’n Groot gestry, jaloesie, die een argument op die ander, verdeeldheid, ’n rugstekery, skinderveldtogte, hoogmoed en chaos sal dan die enigste gevolge van so ’n slegte ontmoeting tussen my en julle wees. Ek is ook bang dat my God my daar voor julle almal in die verleentheid sal bring as ek van voor af ontsteld raak oor daardie mense wat aanhou om dieselfde sondes te doen. Tot nou toe weier hulle om hulle te bekeer van al daardie vieslike onreinhede en seksuele sondes waaraan hulle meedoen. My derde besoek aan julle is voor die deur. Luister daarom mooi na wat ek nou vir julle sê; dan sal alles goed verloop wanneer ek daar opdaag. Kyk, die Bybel sê twee of drie getuies is nodig om in ’n saak te getuig voordat ’n hof enige uitspraak daaroor lewer. Wat wil ek hierdeur vir julle sê? Wel, onthou julle hoe ek tydens my tweede besoek die klomp sondaars daar tussen julle vasgevat het? Nou sê ek weer vir julle hier kort voor my derde besoek dat ek net mooi niks daarvan hou dat party van julle aanhou sondig nie. Hou dadelik op daarmee, of dra die gevolge! Party van julle soek mos die een of ander bewys dat Christus ook deur my praat. Wel, daar wag ’n groot verrassing op julle. Hy gaan hierdie keer wanneer ek by julle is, met groot krag onder julle werk, nie met swakheid nie. Natuurlik was Christus vroeër weerloos en swak toe Hy aan die kruis gehang en daar gesterf het. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Christus lewe nou uit die groot krag van God. Natuurlik is ek ook maar swak, al is ek ’n volgeling van Christus. Maar moenie dat dit julle mislei nie. Wanneer ek daar na julle toe kom, sal julle sien dat God se groot krag deur my werk wanneer Christus my daar tussen julle gebruik. Nou wil ek ernstig met julle praat: gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle? As julle dié toets nie slaag nie, wag daar groot probleme op julle. Terwyl julle julle eie geloof onder die vergrootglas plaas, hoop ek julle sal agterkom dat ek hierdie toets al lankal geslaag het. Ek bid ernstig tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Want dis regtig nie so belangrik wat julle van my geloof dink nie. Julle kan maar sê ek is nie ’n Christen nie, solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak. Maar julle kan daarvan seker wees dat ek nooit in die pad van die waarheid staan nie. Inteendeel. Ek doen my bes sodat die waarheid nog meer mense kan bereik. Ek gee nie om om swaar te kry nie, solank julle net sterk is in julle geloof. Dan loop my hart oor van blydskap. Daarom bid ek dat julle geloof regtig sal begin groei. Ek skryf al hierdie dinge terwyl ek nog nie daar by julle is nie. Dan hoef ek nie later, wanneer ek in Korinte aankom, met julle te raas en te baklei nie. Die Here het my immers aangestel om mense se geloof op te bou, nie om dit af te breek nie. Ten slotte: julle lewe moet altyd vol blydskap wees. Lewe presies net soos God vir julle sê. Luister na alles wat ek vir julle gesê het. Wees eensgesind. En lewe asseblief in vrede met mekaar. Ons wonderlike God wat sy liefde oor ons almal uitgestort het en aan ons sy vrede gee, sal altyd by julle wees. Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas. Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete. Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen. Van Paulus. Jesus Christus het my as ’n apostel aangestel, saam met God die Vader wat Hom uit die dood laat opstaan het. My aanstelling as apostel kom nie van mense af nie. Ek en die gelowiges wat hier by my is, groet julle almal daar in die kerke in Galasië. Ons God en Vader en ons Here Jesus Christus se goedheid en vrede is by julle almal. Jesus Christus het sy lewe vir ons opgeoffer sodat ons sondes nie meer soos ’n muur tussen God en ons staan nie. Hy het dit vir ons gedoen om ons uit die kloue van hierdie sondige wêreld te bevry. Op hierdie manier het Jesus ons God en hemelse Vader se raadsplan tot uitvoer gebring. Aan God alleen kom al die eer toe. Nou en vir altyd! Vir seker! Wat is dit deesdae met julle? Ek kan nie glo dat julle so gou van God af weggedraai het nie. Het julle vergeet dat Hy julle sy kinders gemaak het omdat Christus so ongelooflik goed vir julle was? En wat doen julle toe om vir Hom daarvoor dankie te sê? Julle gaan staan en aanvaar ’n heeltemal ander evangelie. Begryp julle dit nou nog nie? Daar is nie ’n ander evangelie nie! Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat. Kom ek sê reguit vir julle: as mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig as dit wat julle by my gehoor het toe ek vroeër daar by julle was, sal God hulle verskriklik straf. Moenie eens na my of na ’n engel uit die hemel luister wat iets anders as dit vir julle kom vertel nie. Kom ek sê dit nog ’n keer sodat julle baie mooi kan hoor: as enigiemand dit sou waag om iets anders oor Christus te sê as wat julle by my gehoor het, wag daar groot probleme op hulle. God se verskriklike vloek sal hulle tref. Dink julle miskien dat ek al dié kwaai dinge sê om julle te probeer beïndruk? Of om God se guns te wen? Probeer ek dalk om in party mense se goeie boekies te kom? Glad nie. As dit my doel in die lewe is om populêr te wees, is ek nie werd om Christus se dienaar genoem te word nie. My broers en susters, verstaan my baie mooi: die goeie nuus oor Jesus Christus wat ek preek, het ek glad nie self uitgedink nie. Dit kom ook nie tweedehands van iemand anders af nie. Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak. Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee. Ek het vinnig opgang binne die Joodse godsdienstige kringe gemaak. Kort voor lank was ek ’n modelgodsdienstige wat kop en skouers bo my volksgenote uitgestaan het. Ek was ’n fanatiese aanhanger van die tradisies van my voorouers. God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk. Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie. Ek het glad nie eens by ander Christene gaan raad vra oor wat ek moes sê nie. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan om daar te gaan kers opsteek by diegene wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is direk na my bekering Arabië toe. Later het ek teruggegaan Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek weer in Jerusalem gekom. Daar het ek vir Petrus ontmoet en vyftien dae by hom oorgebly. In daardie tyd het ek nie een van die ander apostels te sien gekry nie, behalwe vir Jakobus, die broer van die Here. Terloops, al hierdie dinge wat ek vir julle skryf, is die reine waarheid. God self weet dit. Ek het toe daar in die streke van Sirië en Silisië begin preek. Op daardie tydstip het Christus se volgelinge in Judea my nog nie persoonlik geken nie. Al wat hulle van my geweet het, was die volgende brokkie nuus: “Daardie man wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die evangelie. Hy praat nou met ander mense oor die geloof wat hy vroeër probeer uitroei het.” Natuurlik was hulle baie bly daaroor. Hulle het vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak. Veertien jaar na my vorige besoek aan Jerusalem het ek weer soontoe gegaan. Barnabas en Titus was ook saam. Dit was egter nie my eie besluit nie. Nee, God het in ’n openbaring vir my kom wys dat ek Jerusalem toe moes gaan. Daar het ek die boodskap wat ek oral onder nie-Jode preek, aan die gelowiges in die stad voorgelê. Ek het ook privaat met die leiers van die kerk in Jerusalem gepraat, met al daardie mans wat so ’n groot naam in die kerk het. Ek het dit gedoen omdat ek doodseker wou maak dat my sendingwerk nie verniet was nie. Dink net wat sou gebeur het as Jerusalem se kerkleiers ernstige kritiek op my boodskap gehad het. Dan was al my harde werk daarmee heen. Titus, wat saam met my Jerusalem toe gegaan het, was ’n Griek. Hy was nie besny soos die Joodse wet dit vereis nie. Gelukkig het die gelowiges in Jerusalem ook nie van hom verwag om dit te doen nie. Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak. Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Weet julle, ons het dit ter wille van julle gedoen. Ons wou doodseker maak dat die regte evangelie ook daar by julle in Galasië uitkom. Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie. Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek. Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie. Toe Jakobus, Petrus en Johannes dan sien dat God so goed is vir my, was hulle baie bly. Net daar het hulle my en Barnabas se hand geskud. Die handdruk van daardie drie steunpilare wat aan die stuur van die kerk in Jerusalem staan, het gewys dat ons almal broers in die Here is. Ons het toe die volgende besluit geneem: Ek en Barnabas sou onder mense werk wat nie Jode is nie. Die leiers van die kerk in Jerusalem sou onder Israel oor Jesus gaan preek. Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel. ’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het. Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie. Ongelukkig het Petrus die ander Joodse gelowiges beïnvloed om net soos hy te maak. Die uiteinde: kort voor lank het al die Joodse gelowiges eenkant gesit en eet en al die ander gelowiges op hulle eie. Selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer. Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?” Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie. In ons pogings om Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie. Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal. As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom. Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer. Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood. Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak. Ek begin my afvra of iemand julle nie dalk getoor het nie. Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang. Wat het intussen skeefgeloop? Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees? Was dit deur te doen wat die wet sê? Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: deur te glo! Julle is regtig die kluts kwyt. Julle het vroeër reg begin: in die krag van die Heilige Gees. En nou? Nou eindig julle in julle eie krag. Was alles wat julle moes deurmaak ter wille van julle geloof dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie! God wat julle met sy Gees vervul het en wat groot wonders onder julle doen, doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie. Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo. Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg. Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders. Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.” Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem. Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.” Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!” Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie. Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.” Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het. My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham. Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus. Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie. As ons die seëninge wat God in hierdie ooreenkoms aan Abraham belowe het, kon kry deur slegs te doen wat die wet sê, is sy ooreenkoms met Abraham mos uitgedien. Maar gelukkig geld God se beloftes aan Abraham nog steeds. God het immers al hierdie beloftes aan Abraham gemaak omdat hy in Hom geglo het. Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie. God doen dit sommer self. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit. Die wet het ons dag vir dag opgepas totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het. [26-27] Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het. Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo. Weet julle, toe julle gedoop is, het julle deel gekry aan Christus se redding. Julle doop was soos ’n stel splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos ’n mens ’n stel nuwe klere aantrek. Nou behoort julle heeltemal aan Hom. *** Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus. Julle wat deel is van Christus se familie is natuurlik ook lede van Abraham se nageslag. Daarom geld al die beloftes wat God aan hom gemaak het ook vir julle. Kom ek verduidelik met die volgende voorbeeld wat dit beteken dat julle Abraham se erfgename is. Julle weet mos dat erfgename wat minderjarig is, nie kan aanspraak maak op hulle erfporsie nie. Hulle is nog te jonk om te erf. Eintlik is minderjariges niks beter daaraan toe as die bediendes wat in hulle huis werk nie. Al sê die testament dat hulle die wettige erfgename is, staan hulle nog onder die toesig van hulle voogde. Hulle erfporsie word beheer deur mense wat amptelik oor hulle aangestel is tot op die dag dat die testament sê hulle kan erf. Weet julle, presies dieselfde het met ons gebeur. Voorheen was ons ook minderjarig. Dit was toe ons nog slawe was van die vyandige magte van hierdie wêreld. Maar toe die regte tyd aanbreek, die tyd waarop God self besluit het, het Hy sy Seun na ons toe laat kom. Christus se aardse ma het toe aan Hom geboorte geskenk. En, soos alle Joodse seuns, het Hy onder die reëls van die wet grootgeword. Dit is hoekom Hy almal wat onder die swaar gewig van die wet gebuk gaan, kan vrymaak. Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word. Ons is nie langer weeskinders nie. Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!” Julle is nie meer slawe van die sonde en die wet nie. Nee, julle is nou volwaardige kinders van God. En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n. Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word? Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring? Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was. Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle! Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle. Sê my, julle wat so graag die wet wil gehoorsaam, het julle al ’n slag mooi gekyk na wat daar regtig in die Bybel geskryf staan? Kom ons kyk weer na Abraham. Hy het twee seuns gehad. Die een het hy by ’n slavin, Hagar, gehad. Sy naam was Ismael. En die ander seun by sy eie vrou, Sara. Sy naam was Isak. Die kind wat hy by die slavin gehad het, is gebore toe Abraham probeer het om sélf God se beloftes waar te laat word. Maar die ander kind is gebore presies net soos God hom belowe het dit sou gebeur. Hierdie twee geboortes is ’n goeie voorbeeld van dit waaroor ons praat. Hulle staan eintlik vir twee verskillende ooreenkomste. Die een ooreenkoms is daar by die berg Sinai in Arabië gesluit. Daar het die volk die wet ontvang. Ongelukkig het daardie ooreenkoms net ’n klomp slawe opgelewer, presies soos dit ook met Hagar, Abraham se slavin, gebeur het. Wel, dieselfde geld vir almal wat die wet probeer hou. Kyk net na wat daar in Jerusalem aangaan, dan sal julle agterkom dat hulle almal eintlik Hagar se nageslag is. Hulle is slawe van die wet met al sy reëls en regulasies. Gelukkig is daar ’n ander Jerusalem wat nie in slawerny verval het nie. Hierdie Jerusalem, wat die resultaat is van God se tweede ooreenkoms met ons, is daar in die hemel. Dit is ons nuwe adres. Hierdie Jerusalem is soos ’n ma vir ons almal wat glo. Jesaja skryf die volgende oor haar: “Vrou, jy wat nie in staat was om kinders te hê nie, kan nou feesvier. Skree sommer van vreugde, jy wat nog nooit geboortepyne gehad het nie. Jy was baie eensaam. Jy het nie die vreugde van kinders geken nie. Maar nou sal jy meer kinders hê as al die ander vroue wat getroud is.” My broers en susters, uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat ons, net soos Abraham se seun Isak, ook deel is van die tweede ooreenkoms. Onthou julle nog hoe Isak, wat deur die Gees se werk gebore is, deur Ismael agtervolg is? Tot vandag toe gaan dit nog so. Daarom sê die Bybel: “Jaag daardie slavin en haar seun weg. Daardie seun van die slavin mag onder geen omstandighede saam met die regte seun erf nie.” Hierdie teks sê vir ons dat ons nie die kinders van ’n slavin is nie. Nee, ons wat glo, is Abraham se kinders. Christus het ons vrygemaak om regtig vry te wees. Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie. Kom ek sê reguit vir julle wat ek bedoel. As een van julle julle laat besny, maak julle ’n bespotting van die nuwe vryheid wat Christus aan julle gegee het. Dan kan julle maar net sowel ophou om in Hom te glo. Dan moet julle ook weer die wet gehoorsaam. Julle wat besluit het om al hierdie godsdienstige reëls en wette te hou om in die regte verhouding met God te wees, sny julle heeltemal van Christus af. Julle het buite die kragveld van sy genade beland. Aan die ander kant, ons wat glo, het ’n wonderlike vooruitsig. Omdat die Gees by ons is, weet ons dat ons op pad is na God se nuwe wêreld. Hy sal sorg dat ons saak met God reg is wanneer ons eendag voor Hom moet gaan staan. As ons in Christus glo, maak dit glad nie saak of ons die teken van die besnydenis aan ons liggaam dra of nie, want dit tel glad nie meer by God nie. Dit is uit die mode; ou nuus. Al wat nou saak maak, is geloof, daardie soort geloof wat maak dat ons ander mense met alles in ons liefhet. Tot dusver het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie. As julle op hierdie verkeerde pad aanhou loop, gaan julle later die hele kerk saam met julle in die gemors insleep. Onthou, ’n klein bietjie suurdeeg maak immers ’n groot stuk deeg suur. Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom. My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak. Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer. My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra. Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.” As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie. Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie. ’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie. Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker. Die Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen. Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink. Ons mag nie onder mekaar stry of op mekaar jaloers wees nie. My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie. Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê. As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie. Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk. Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee. Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle. Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang. Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie. Hier teen die einde van my brief het ek dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf. Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot letters wat ek maak. Daardie mense in die gemeente wat vir julle sê om besny te word, doen dit net om ander te beïndruk. Op dié manier soek hulle ’n maklike uitweg sodat hulle nie vervolg word nie. Hulle is nie bereid om die lyding te verduur wat hand aan hand gaan met die regte verkondiging van die kruis van Christus nie. Gaan kyk mooi, daardie mense wat sulke groot voorstanders van die besnydenis is, verroer self nie ’n vinger om te doen wat die wet sê nie. Hulle wil net hê dat julle ook besny moet word sodat hulle oor julle kan spog. Hulle wil graag sê dat hulle daarin geslaag het om julle na hulle kant toe oor te haal. Ek self sal dit nooit waag om oor iets anders as oor die kruis van ons Here Jesus Christus te spog nie. Ek is saam met Hom gekruisig. Daarom het die wêreld en al sy sondige begeertes geen houvas meer op my lewe nie. Ek is dood vir die mag van die sonde. Wanneer ’n mens glo, maak dit nie meer saak of jy besny is of nie. Al wat nou saak maak, is dat jy ’n splinternuwe mens is; ’n splinternuwe skepping. Almal wat volgens Christus se nuwe reëls leef, is nou deel van die nuwe Israel. God gee aan hulle almal sy vrede en genade. Ek het nou heeltemal genoeg oor die wet en die besnydenis gesê. Moet my asseblief nie verder oor al hierdie dinge uitvra nie. Ek het heeltemal genoeg ander probleme omdat ek die evangelie verkondig. Kyk dan net hoeveel littekens van Jesus ek oral aan my eie lyf dra. Ek is omtrent al geslaan en mishandel. Die goedheid van ons Here Jesus Christus is met julle almal. My broers en susters, ek bid dat julle sy krag in julle lewe sal ervaar. Amen. Ek, Paulus, wat spesiaal deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf. Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat in Christus Jesus glo. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee soos net Hulle kan. Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus, te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons - wat eintlik niks was nie - baie belangrik kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is vir ’n mens om te hê. Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie. Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie - Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur. Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur. Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is. Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles. [9-10] Daarom het Hy besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy, toe die tyd ryp was, besluit het om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was. Dit was eintlik eers net God se geheim, wat mense glad nie verstaan het nie. Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet. Ja, Hy sal alles - of dit nou in die hemel is of op die aarde - bymekaarbring soos dit met die skepping bedoel was, en Jesus sal oor alles regeer. *** God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê. Ons was mos die eerste mense wat alles aanvaar het wat Jesus beloof het en wat seker weet dat ons dit gaan kry. God wil hê dat juis ons vir almal moet wys en vertel hoe groot en belangrik Hy regtig is. Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat van die goeie boodskap oor Jesus wat julle red. Daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy beloof het. Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee. Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is. Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so. Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak. Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak. [19-21] Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. *** *** [22-23] God self het vir Jesus die magtige posisie gegee om oor alles en almal te heers, ook oor die kerk. Jesus is die leier van die kerk en die kerk moet daarom gehoorsaam doen wat hulle leier van hulle verwag. Laat ek ’n voorbeeld gebruik: Jesus is soos die kop en die kerk soos die res van die liggaam. Saam is hulle een. Die kop beheer die liggaam en laat sy invloed deur die hele liggaam vloei. Die kop sorg vir alles wat elke deeltjie van die liggaam nodig mag hê. En die liggaam, die kerk, laat die kop, Jesus, volledig wees wat Hy is. Dink weer ’n slag mooi na oor alles wat God vir julle gedoen het. Julle was eers soos dooie mense as dit by God en sy dinge gekom het. Kyk net hoe lelik het julle geleef en hoeveel dinge het julle gedoen waarvan God net mooi niks gehou het nie. Dit was toe julle al agter die duiwel, die leier van die onsigbare geeste, aangeloop en presies gedoen het wat hy van julle gevra het. Daardie selfde ou duiwel is nog steeds bedrywig onder die mense wat nie luister na wat God vra nie. Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God. Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin. Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie. Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n. Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie. Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef. Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen. Dink liewer terug aan die tyd toe julle niks van Jesus af geweet het nie. Toe was julle nie deel van die mense van God nie en julle het nie eens geweet watter ooreenkoms God met mense wil maak en wat Hy daarom alles vir hulle beloof het nie. Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees. Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het. Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is. Juis daarom sit ek, Paulus, hier vir Christus in die tronk. Ek is in die tronk gegooi omdat ek vir julle wat nie Jode is nie van Christus vertel het. Julle het seker al gehoor dat God my gevra het om vir julle te kom vertel hoe goed Hy regtig is. God het duidelik vir my gewys wat sy plan met julle is, al het mense dit glad nie besef nie. Ek het al so ’n bietjie daarna begin verwys. As julle nou verder lees, sal julle ook duidelik begin agterkom hoe die verrassende plan van God met Christus werk en hoe ek dit verstaan. Deur die loop van die geskiedenis het die mense nie geweet wat God gaan doen nie. Nou is dit egter nie meer vir ons ’n geheim nie. Die Heilige Gees het dit aan al die mense vertel wat gekies is om God se Woord te verkondig. Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het. God het my aangestel om hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ’n voorreg wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee ook vir my die krag om dit te doen. Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit. Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag. Ek vra God daarom dat julle nie moed sal verloor omdat ek so swaarkry ter wille van julle nie. Dit wys eerder hoe belangrik julle is. Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het. Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is. Maar ek bid tog dat julle so ’n ietsie daarvan sal snap. Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewens is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie. God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees. Ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. Dit wys hoe ernstig ek oor hierdie dinge is, en juis daarom vra ek julle mooi: leef so dat God trots kan wees dat Hy julle na Hom toe geroep het. Moenie voor op die wa wees nie en behandel ander mense so dat dit vir hulle lekker is om by julle te wees. As iemand jou kwaad maak of irriteer, beheer jouself deur steeds mooi teenoor hom op te tree. Laat liefde julle lojaal teenoor mekaar hou, ook wanneer julle voel julle het nou vir eers genoeg van mekaar gehad. Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” [9-10] (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) *** Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help. Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie. Julle het Christus egter nie so leer ken nie. Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy. Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God. As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. Moenie die duiwel kans gee om jou vas te trek nie. As iemand ’n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat, moet hy dadelik daarmee ophou. Hy moet vir hom ’n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien. Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê om vir mense wat niks het nie, iets te gee. Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan. Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees. Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is. Maak soos God gemaak het, want so maak kinders wat ’n liefdevolle Vader het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal. Dit is mos die voorbeeld wat Christus vir julle gegee het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het. Onthou, julle behoort aan God. Daarom mag julle nie eens daaraan dink om seksueel verkeerde dinge van watter aard ook al te doen of om van gierigheid oor te loop nie. Oppas wat julle sê. Moenie lelik praat, vuil stories of skurwe grappe vertel nie. Dit pas nie by ’n Christen nie. Praat liewer só dat dit vir God aangenaam is om te hoor. Hiervan kan julle seker wees: as iemand onsedelik of vuil leef, of so graag ryk wil word dat hy van geld ’n afgod maak, is daar nie vir hom plek in die nuwe wêreld van Christus en van God nie. Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie. Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê: “Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.” Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef. Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word. Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here. Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen. Omdat julle soveel respek vir Christus het, moet die een nie dink hy is beter of belangriker as die ander nie. Elkeen moet bereid wees om dáár te wees vir die ander een. Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar. Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam. Die Skrif sê mos: “’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.” Mense kan hierdie dinge nie altyd mooi verstaan of verklaar nie. Ek noem dit omdat dit vir ons iets leer oor die sterk band wat daar tussen Christus en sy kerk is. Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het, en die vrou moet haar man respekteer. Vir die kinders wil ek die volgende sê: as Christene moet julle na julle ouers luister. Dit is wat God van julle vra. Die Skrif sê: “Jy moet jou pa en ma respekteer” - kyk mooi hoe gaan hierdie gebod verder, want dit is die eerste gebod waarin God iets beloof - “sodat dit goed met jou sal gaan en jy ’n lang en gelukkige lewe mag hê.” Vir die pa’s wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree. As julle slawe is sonder vryheid en aan iemand anders behoort, moet julle na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen. Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen. Julle weet mos dat God elkeen sal beloon vir die goeie dinge wat hy gedoen het; dit maak nie saak of daardie persoon belangrik is of nie. Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel. Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie. Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het. Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders. Daar bly nog een ding oor waaroor ek met julle wil praat. As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen as julle naby aan die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak. Laat ek die voorbeeld van soldate in ’n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is ’n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin. Dis nie ’n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van oral af. Sorg dat julle al die wapens reg hou wat God vir julle gegee het sodat wanneer die bose magte op julle toesak, julle nie ’n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees. Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen: die waarheid moet jy soos ’n belt om jou middel vasbind. Die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het, moet soos ’n stuk staal jou bors beskerm. Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees. Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos ’n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die Bose keer en eenkant toe slaan. Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos ’n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die boodskap van God is soos ’n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer. Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie. Bid asseblief vir my dat die Here vir my die regte woorde sal gee wanneer ek met mense oor Hom praat, sodat ek nie bang sal wees om vir mense van Jesus te vertel nie, al verstaan hulle nie altyd alles mooi nie. Al sit ek nou hier in die tronk, het God my aangestel om die goeie nuus aan almal te vertel. Bid tog asseblief dat ek nie bang sal wees om die boodskap so reguit en duidelik te verkondig soos ek moet nie. Ek wil graag hê dat julle moet weet wat hier aangaan en hoe dit met my gaan. Tigikus, my liewe broer en getroue werker vir die Here, sal julle alles vertel. Dit is juis waarom ek hom na julle toe stuur: hy moet vir julle vertel hoe dit met my gaan sodat julle nie meer so bekommerd hoef te wees nie. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle die vrede gee wat net God kan gee. Mag die Vader en Jesus Christus vir julle die liefde en geloof gee wat julle nodig het. Mag God baie goed wees vir almal wat ons Here Jesus Christus vir ewig en altyd sal bly liefhê. Paulus en Timoteus, twee mense wat Christus Jesus dien met alles wat hulle het, het hierdie brief geskryf. Die brief is bedoel vir al die mense in Filippi wat God s’n is omdat hulle Christus Jesus ken. Dit is ook bedoel vir die gemeente se leiers en dié wat aangewys is om die gemeente te help versorg. Ons groet julle met die wens dat God ons Vader en die Here Jesus Christus vir julle baie goed sal wees; mag julle die vrede beleef wat net God kan gee. Elke keer wanneer ek aan julle dink en met God oor julle praat, sê ek vir Hom baie dankie vir gelowiges soos julle. In geen gebed slaan ek oor om spesifiek aan julle te dink nie, en dit is ook baie lekker vir my om vir julle te bid. Julle staan mos soos een man saam agter God se goeie boodskap met nog presies dieselfde vuur en oortuiging as aan die begin. Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees. Ek het rede om so oor julle almal te voel. Ek het nog altyd ’n baie besondere plekkie vir julle gehad. Julle was mos van die begin af aan my kant, soos nou nog steeds. Dit het vir julle nie saak gemaak of ek in die tronk gegooi is of soos ’n misdadiger in die hof moes veg en beledig is omdat ek vir mense van Jesus vertel het nie. God was egter deur dit alles goed vir my, en dit het julle die hele tyd saam met my ervaar. Ek verlang baie na julle, gaan vra maar vir God self; Hy sal julle kan sê hoe baie ek verlang. Julle weet hoe baie Christus vir julle omgee. Nou ja, ek gee net soveel vir julle om. Weet julle waarvoor bid ek? Ek bid dat julle al hoe nader aan Jesus sal leef. Dit is moontlik as julle bereid is om uit julle geestelike ervaring te leer. Dan sal julle altyd die beste keuses kan maak. Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom, niemand ’n vinger na julle sal kan wys en julle van swakhede beskuldig nie. In alles wat julle doen, sal mense kan sien dat julle verhouding met God reg is. Jesus Christus sal julle help om reg te lewe. So sal mense aan julle kan sien hoe wonderlik God is. Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat. My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan. Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ’n Christen is. Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat. [15-17] Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is. *** *** Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly. En dit is nie al wat my bly maak nie. Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie. Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie. Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is. Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit? Maar aan die ander kant is dit vir julle beter en selfs nodig dat ek eers nog ’n rukkie bly lewe. Inderwaarheid is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie. Ek sal nog ’n ruk lank vir julle gespaar bly. Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is. Ek weet mos, as ek binnekort weer daar by julle aangestap kom, sal julle net nie uitgepraat kan raak oor wat Christus Jesus alles vir my gedoen het nie. Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is. Moenie dat die ander wat van julle verskil, julle senuagtig of bang maak nie. Die feit dat julle nie sommer weghardloop nie, sal vir hulle wys dat hulle op die verkeerde pad en julle op die regte pad is. Julle pad loop na God toe. Hy is die Een wat julle red omdat julle in Christus glo. Ons het dit nie verdien nie, maar God het dit ter wille van Christus vir ons gedoen. Daarom is dit nie te veel gevra om ter wille van Christus ook swaar te kry nie. Kyk maar na my. Ek is nie al een wat ter wille van Jesus swaarkry nie. Ek en julle stap sy aan sy as Christene, en daarom lê daar soms ook vir julle ’n moeilike, opdraande pad voor. As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra. Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop. Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en niemand kan ook belangriker as Hy wees nie. God self het so besluit. Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is. My liewe broers en susters, dit wat ek nou net gesê het, is belangrik. Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie! Onthou, God hou julle dop. Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke. Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk. Doen alles sonder om te kla of te stry. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie. Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne. Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê. Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie. Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is. Boonop ken julle Timoteus en weet wat daar in hom steek. Hy het die toets mos deeglik deurstaan. Soos ’n seun skouer aan skouer saam met sy pa werk, so het hy hom afgesloof om saam met my die mense van Jesus Christus te vertel. Ek moet erken dat ek ook baie bly sal wees om te hoor hoe dit met julle gaan. Nou ja, sodra die dinge hier afgehandel is en ek weet wat die toekoms vir my inhou, beplan ek om hom na julle toe te stuur. En ek hoop en bid dat die Here my sal toelaat om sommer kort op sy hakke na julle toe te kom. Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug. Hy verlang baie na julle. Dit het hom ook gepla dat julle van sy siekte gehoor het. Glo my, hy was baie siek. Hy het by die dood omgedraai. Maar God het nie van hom vergeet nie en hom gesond gemaak. God was nie net vir hom goed nie, maar ook vir my. As hy gesterf het, sou die hartseer vir my byna te veel gewees het. Ek sal hom so gou moontlik na julle toe terugstuur. Ek kan my nogal voorstel hoe bly julle gaan wees wanneer julle hom weer in lewende lywe sien. Vir my sal dit ook goed wees, want dan hoef ek my nie meer oor hom te bekommer nie. Gee hom ’n verwelkoming wat hy nie sommer sal vergeet nie, soos net ons Christene dit kan doen. Mense soos hy verdien dit. Hy was nie bang om selfs sy lewe te waag om alles vir Jesus te doen wat hy kon nie. Hy was amper dood, en dit om vir my te doen wat julle nie kon nie omdat julle so ver is. Liewe broers en susters, voor ek klaar is, is daar nog iets belangriks wat ek vir julle wil sê: moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken. Dit pla my nie om dieselfde dinge weer ’n keer aan julle te skryf nie. Dit kan mos nie kwaad doen nie, maar so sal julle net sekerder van julle saak word. Wees baie versigtig vir daardie skelms wat maak asof hulle vir Jesus werk, maar eintlik net die teenoorgestelde doen. Kyk hoe sleg tree hulle op. Dit wys mos vir julle wat hulle ware gedaante is. Oppas, al waarin daardie mense belangstel, is om julle te dwing om Joodse gebruike na te kom, soos om julle te laat besny. Moenie julle daaraan steur nie. Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê. Dit is nie sommer net iets fisieks wat met ons gebeur (soos met die Joodse gebruike) nie, maar God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help. Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het. As dit wat God aan jou doen iets is wat regtig saak maak, staan ek nie ’n duim vir die ander terug nie. Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word, is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort. So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink. Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly. My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg. Ek het dit al baie vir julle gesê en dit maak my eintlik seer om dit weer te moet sê: daar is baie mense wat niks van Jesus hou en van wat Hy alles vir ons gedoen het nie. Mense wat agter daardie klomp aanloop, gaan saam met hulle die afgrond afstort waar hulle vir ewig van God af weg sal wees. Hulle stel mos meer belang daarin om hulleself en hulle eie begeertes te dien as vir God. Hulle spog oor dinge waaroor ’n mens jou eintlik bloedrooi behoort te skaam. Aan God dink hulle nie eens nie, want al wat vir hulle waarde het, is aardse dinge. Hoe anders is ons nie! Wat vir ons saak maak, is die hemelse dinge. Daar lê ons ware vaderland. Uit daardie vaderland sal ons Redder kom. Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus. Hy gaan ons swak menslike liggaam verander. Hy gaan ons liggaam nuut maak soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik. Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is, want sy krag oortref alle ander krag. Wat Hy wil, dit kan Hy doen. Ai, broers en susters, ek verlang so na julle, want ek het julle lief. Julle maak my bly en laat my soos ’n koning voel. Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het. Euodia en Sintige, ek vra julle baie mooi: los julle geskille op. Julle behoort mos al twee aan die Here. En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Hulle het baie saam met my gedoen en verduur om vir mense van die goeie boodskap te vertel. Hulle kan in een asem genoem word met Klemens en van die ander wat saam met my gewerk het. Hulle name staan opgeteken in die boek waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig saam met God sal lewe. Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug. Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie. Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees. Sê asseblief groete namens my aan al die Christene daar by julle. Die Christene hier stuur ook groete. Die Christene wat op die keiser se personeel is, sê spesiaal groete. Mag ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees, ver meer as wat julle verdien. Mag julle hierdie goedheid diep in julle binneste ervaar. Van Paulus, ’n apostel van Jesus op gesag van God, en van Timoteus, ’n mede-Christen. Hierdie brief is bedoel vir al die mense van Kolosse wat spesiaal net God s’n is. Ek skryf vir julle wat in Jesus glo en daarom deel van God se hegte familie is. Mag God, ons Vader, vir julle baie goed wees. Mag Hy vir julle daardie diep vrede gee wat net Hy kan gee. Dank God dat julle Christene is! Wanneer ek bid, kan ek God nie genoeg dankie sê vir wat Hy vir julle doen nie. Ek praat nie sommer van enige god nie. Ek praat van God, die Vader van Jesus Christus, ons Here. Ek het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en daarom baie omgee vir al God se kinders. Dit doen julle omdat julle vir seker weet dat God self alles waarborg wat Hy vir julle belowe het en vir julle reg hou. Vir hierdie goeie nuus staan God self in. Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is. By Epafras het julle alles geleer. Hy is regtig ’n staatmaker en ek hou baie van hom. Hy werk hard saam met my vir die Here. Hy is iemand op wie Christus regtig peil kan trek. Julle het natuurlik ook die vrugte van sy goeie werk gepluk. Dit is juis by hom dat ons gehoor het hoe lief julle mekaar het. God se Gees werk mos in julle. Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef. Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie. En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan. God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed! Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is sodat julle die reg het om vir altyd te wees waar Hy, die groot Koning, heers. Hy sal julle beskerm. Daar waar God se wonderlike lig sonder ophou skyn, sal julle saam met al sy ander kinders bly. Julle vra hoe dit moontlik is. Wel, ons was eers in die donker mag van God se vyande vasgevang. God het ons egter uit hulle mag geruk. Nou staan ons onder die mag van sy Seun. Dit is die Seun wat Hy liefhet. Hierdie Seun raak ook namens ons ontslae van die skuld wat ons deur ons sondes op ons gelaai het. Deur sy toedoen word ons sondes vergewe. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie? Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie. Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie. Ek loop nie met ’n lang gesig rond oor al die swaarkry en lyding wat my oorgekom het nie. Inteendeel, ek is bly daaroor, want julle vind ook baat daarby. Julle weet hoe Christus vervolg is. Wel, hierdie vervolging teen Hom het nog glad nie opgehou nie. Ek self loop nog net so onder fisieke vervolging deur. Vir die kerk, die liggaam van Christus, doen ek dit. Met alles wat ek het, werk ek vir die evangelie. God self het my daarvoor aangestel. Op my skouers rus die verantwoordelikheid om die boodskap van God van begin tot end aan julle te verduidelik. God het ’n geheim gehad. Baie eeue en geslagte lank het niemand geweet wat dit is nie. Maar die geheim is nou bekend. God het besluit om aan sy eie mense die geheim te vertel. Hulle weet nou hoe ongelooflik wonderlik hierdie geheim is, veral vir nie-Jode. Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n mens net by God kan kry. Die inhoud van ons verkondiging gaan juis oor Christus. Ons praat reguit met almal oor Hom en leer hulle alles wat hulle van God en hulleself af moet weet. Ek wil hê dat elke mens die goddelike doel in sy lewe moet bereik. Dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus. Daarvoor gee ek alles. Ek werk hard en doelgerig daarvoor soos iemand wat in ’n resies alles uithaal. Die krag om dit te doen kom van Jesus af. Ek wil hê julle moet weet hoe ek my vir julle inspan. Dit is of ek in ’n hewige geveg ter wille van julle en die Laodiseërs gewikkel is; selfs ook vir hulle wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie. So wil ek hulle bemoedig. Hulle moet besef dat ons deur die drade van liefde aan mekaar vasgeweef is. Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. Skatte word in ’n skatkis gebêre. Om die goddelike dinge te ken en te verstaan hoe dit werk, is vir Christene soos sulke waardevolle skatte. Dit is in Jesus opgesluit en kan net by Hom gekry word. Ek beklemtoon dit sodat niemand julle op ’n verkeerde spoor kan lei met redenasies wat slim mag klink, maar eintlik van leuens deurtrek is nie. Ek is dalk wel nie persoonlik daar by julle nie, maar in my gees is ek tog saam met julle. Ek praat dus nie sommer as ek sê dat ek baie bly is oor die ordelike en stylvolle manier waarop julle dinge doen nie. Ek is net so bly daaroor dat julle nie ’n duim toegee nie, maar rotsvas bly staan wanneer dit kom by wat julle oor Jesus glo. Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer. Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte. Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie? Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien. Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet. Ek wil julle ’n vraag vra. Julle sê dat toe julle Christene geword het, al hierdie vals en leë godsdienstige reëls hulle betekenis vir julle verloor het. Soos dit vir Christus niks beteken nie, so beteken dit ook vir julle niks meer nie. Waarom wil julle dan kort-kort maar weer kerk hou asof daardie godsdienstige gebruike die eintlike godsdiens is? In die beeld van vroeër: Waarom wil julle aanhoudend die skaduwee in plaas van die persoon omhels? Julle raak vreeslik ernstig daaroor dat ’n Christen nie sekere dinge mag eet of aan ander dinge mag vat nie. Dit lyk amper of julle dink God self is in hierdie aardse dinge vasgevang. Intussen het bloot gewone mense al die reëls en idees uitgedink en dit “godsdiens” genoem. Daardie kos wat kamma so heilig of onheilig is dat julle dit nie eens mag eet nie, lê môre vrot op die ashoop. ’n Mens moet toegee, al hierdie godsdienstige dinge lyk op die oog af baie slim en indrukwekkend, al het mense dit uitgedink. Kyk net hoe nederig hou hulle hulle en hoe swaar kry hulle ter wille van dit waarin hulle glo. Tog maak dit nie van hulle beter mense nie. Hulle bly nog maar sondaars. Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. Onthou, Hy is die Een met die mag. Hy sit op die oomblik op die ereplek langs God self in die hemel. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou. Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle. Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is. Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry. Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie. Julle weet goed waarvan ek praat. Julle het self vroeër so geleef. Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus. God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie. Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee. Vroue, erken die gesag wat mans in die gesin dra. Die Here verwag dit. Mans, wees lojaal en liefdevol teenoor vroue. Moenie geïrriteerd raak met hulle nie. Kinders, luister na wat julle ouers sê. Daarvan hou die Here. Pa’s, moenie te veel druk op julle kinders sit nie. Netnou verloor hulle moed omdat hulle voel dat julle nooit tevrede is nie. Nou kom ek by julle wat vir base werk. Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie. Wees eerlik en werk hard omdat die Here altyd vir julle kyk. Julle wil tog die Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe waarmee julle julle werk doen. Die Here sal vir julle gee wat julle verdien; daarvan kan julle seker wees. Julle sal by Hom in sy nuwe wêreld gaan bly en daar alles geniet wat Hy vir julle sal gee. Want die eintlike Baas vir wie julle werk, is mos Christus. En hierdie Baas trek niemand voor nie. As iemand dus nie doen wat God wil hê nie, sal hy maar die straf daarvoor moet dra. Base, behandel julle werkers regverdig en eerlik. Julle besef natuurlik dat julle ook ’n Baas in die hemel het. Bid gereeld en gedissiplineerd. Sê ook vir God dankie vir alles wat Hy vir julle doen. Moet asseblief ook nie vergeet om vir ons te bid nie. Vra God om vir my deure oop te maak sodat ek vir die mense van Christus kan vertel. Ek wil vir almal die geheim vertel dat Christus ook vir hulle bedoel is, al sit ek ook juis daarom vandag in die tronk. Vra God om my te help om die regte dinge op die regte tyd te sê wanneer ek vir mense van Jesus vertel. As julle met mense te doen kry wat nie Christene is nie, moet julle julle veral goed gedra. Gebruik elke oomblik om ’n positiewe invloed op hulle uit te oefen. Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was. So ’n ingesteldheid sal julle help om te weet in watter rigting om gesprekke te stuur en wat om volgende te sê. Ek stuur my goeie vriend Tigikus terug na julle toe. Hy sal vir julle alles van my kom vertel. Ek hou regtig baie van hom. Hy werk hard vir die Here. ’n Mens kan op hom staatmaak. Ek weet, want ek werk saam met hom. Hy sal ook vir julle sê hoe dit hier gaan. Hy sal julle ook sommer moed kan inpraat. Ek het Onesimus gevra om saam met Tigikus Kolosse toe te gaan. Hy is mos een van julle. Hy is net so betroubaar soos Tigikus en ons is ook baie erg oor hom. Hy is ’n lojale broer vir ons. Wat Tigikus vergeet om vir julle van ons te vertel, sal Onesimus sekerlik byvoeg. Aristargos stuur vir julle groete. Hy is saam met my hier in die tronk. Markus, Barnabas se neef, stuur ook groete. Ontvang hom asseblief goed wanneer hy daar aankom. Julle weet mos wat om te doen. Jesus, wie se ander naam Justus is, stuur ook groete. Hierdie mans is die enigste Jode wat enduit saam met my bly werk het om God Koning in mense se lewe te maak. Glo my, hulle het al baie vir my beteken. En dan is daar natuurlik Epafras wat julle so goed ken. Hy het my gevra om julle spesiaal namens hom te groet. Hy gee al sy tyd en energie vir Christus Jesus. As ons maar hoor, bid hy baie ernstig vir julle, veral vir julle geestelike volwassenheid. Hy vra God om julle te help om nie ’n duim van die koers af te wyk nie. Hy bid dat julle lewe al hoe meer sal word soos God dit wil hê. Ek kan julle verseker, hy bid ernstig vir julle in Kolosse, asook vir die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis. Geliefde dokter Lukas en Demas stuur ook groete. Sê asseblief namens my groete vir die Christene in Laodisea. Moet ook nie vergeet van Nimfa en die gemeente wat in haar huis kerk hou nie. Lees asseblief eers hierdie brief daar in julle gemeente. Stuur dit daarna na Laodisea toe vir hulle om te lees. Ek het ook ’n brief vir die gemeente in Laodisea gestuur en gevra dat hulle dit weer vir julle stuur. En, o ja, sê asseblief vir Argippus dat hy moet volhou met die taak wat die Here vir hom gegee het. Hy moet sorg dat hy dit klaarmaak. Met my eie handskrif wil ek, Paulus, julle graag groet. Moet my asseblief nie vergeet waar ek hier in die tronk sit nie. Dink aan my. Mag God vir julle baie goed wees, nog meer as wat julle verdien. Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Ons groet julle almal daar in die kerk in Tessalonika. Julle ken God as Vader en julle glo in die Here Jesus Christus. Mag julle elke dag God se goedheid beleef. En mag julle ook sy vrede in julle lewe ervaar. Elke keer wanneer ek met God oor julle elkeen praat, is daar net een woord op my lippe: Dankie! Ek vertel oor en oor vir God ons Vader hoe julle julle geloof uitleef in alles wat julle doen. Julle liefde vir ander mense vra baie groot opofferings van julle. En julle hou ook onverskrokke vas aan ons Here Jesus Christus se beloftes dat Hy terugkom. My broers en susters, julle doen al dié wonderlike dinge omdat God julle baie liefhet. Hy het julle uitgekies om sy kinders te wees. Die goeie nuus oor Christus wat ons daar by julle gepreek het, was nie maar net ’n klompie mooi woorde nie. Nee, die Heilige Gees het ons prediking kragtig in julle lewens gebruik. Hyself het julle oortuig om in Christus te glo. Julle onthou nog baie goed hoe ons daar by julle opgetree het. Julle weet mos dit het net oor julle redding gegaan, oor niks anders nie! Julle het gou-gou ons voorbeeld begin volg. Daarom is julle nou, net soos ons, volgelinge van die Here. Ek weet dit was glad nie vir julle maklik om Christene te word nie. Onder baie moeilike omstandighede het julle begin glo. Tog het julle die goeie nuus met groot blydskap aanvaar. Dit is net die Heilige Gees wat sulke blydskap in ’n mens se lewe kan bring. Julle is ’n voorbeeld vir al die ander Christene in die Romeinse provinsies Masedonië en Agaje, want van julle af is die woord van die Here oral in dié twee provinsies versprei. Ja, nie net daar nie, maar sommer op baie ander plekke het ander mense gehoor van julle geloof in God. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te sê hoe bly ek hieroor is nie! Oral waar ek kom, praat die mense oor hoe hartlik julle ons ontvang het. Hulle vertel vir ons dat julle al julle dooie afgode laat staan het om die lewende en enigste ware God te dien. Die mense vertel ook dat julle baie uitsien na die dag dat Jesus uit die hemel na ons toe sal terugkeer. Jesus is God se eie Seun. God self het Hom uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die oordeel van God op die laaste dag. My liewe broers en susters, julle weet self dat my besoek daar by julle goed afgeloop het. Baie mense het tot bekering gekom toe hulle die goeie nuus gehoor het. Net voor ek en my helpers daar na julle toe gekom het, was ons eers in die stad Filippi. Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef. Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie. Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is. Ons sal nooit dinge sê om by mense gewild te probeer wees nie. Julle weet dit al teen dié tyd. Ons probeer ook nie op skelm maniere geld maak uit die evangelie nie. God is ons getuie. Hy ken ons harte. Ook soek ons nie na die erkenning van mense nie, nie julle s’n nie en ook nie ander mense s’n nie. Natuurlik kon ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou. Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel. Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe. Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ’n liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed. Ek gee ontsettend baie om vir julle almal. Daarom was dit vir my ’n groot voorreg om die goeie nuus wat direk van God af kom, met julle elkeen te deel. Weet julle, ek sou selfs my eie lewe vir julle opgeoffer het omdat ek julle met my hele hart liefhet. Julle onthou seker nog hoe hard ek daar by julle geswoeg en gesweet het. Tussen al my preke deur het ek my eie inkomste verdien. Ek het dit gedoen omdat ek nie ’n finansiële las op julle skouers wou laai terwyl ek die goeie nuus oor God aan julle bekendmaak nie. Julle weet dat nie ek of een van my helpers ’n voet verkeerd gesit het daar by julle nie. God weet dit ook. Ons het alles gedoen wat Hy van ons verwag. [11-12] Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê. Hy self het julle uitgesoek om deel te wees van sy hemelse koninkryk en om te deel in sy heerlikheid. *** Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo. My broers en susters, julle weet teen hierdie tyd ook van die gemeentes van God daar in Judea. Net soos julle behoort hulle ook aan Jesus Christus. En, net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote. Daardie Jode wat die kerk nou so vervolg, het ons Here Jesus en God se boodskappers doodgemaak. Hulle tree teen God se wil op. Ja, hulle is niks minder nie as vyande van die mensdom. Hulle het hulle bes gedoen om my te probeer keer om die goeie nuus aan mense uit ander volke te preek sodat hulle ook gered kon word. Daardeur het hulle hulle eie graf gegrawe. Hulle beker loop oor van sonde! Daarom het God se oordeel hulle reeds begin tref. My liewe broers en susters, ons was skaars weg daar by julle, toe begin ek al na julle verlang. Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet julle eenvoudig weer sien. Ek het toe begin planne maak om weer in Tessalonika uit te kom. Weet julle, ek het hard probeer om na julle toe te kom, maar Satan het elke keer ’n stokkie voor my planne gesteek. Ek is verskriklik trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se nuwe wêreld. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as ons voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Dan sal ek nie my kop in skaamte hoef te laat sak nie. Ek sal trots vir Christus kan sê dat julle voluit vir Hom geleef het. Ek kan nie genoeg vir julle sê hoe bly ek oor julle almal is nie. Maar wag, ek was nog besig om julle te vertel hoe ek probeer het om na julle toe te kom. Toe ek in Atene gepreek het, het ek later so baie na julle verlang dat ek op die ou end besluit het om Timoteus na julle toe te stuur. Hy is ’n dierbare broer van ons almal. Hy staan saam met my in God se diens en help my om die goeie nuus oor Christus oral bekend te maak. Ek het Timoteus na julle toe gestuur om julle geloof sterk te maak en om julle aan te moedig om voluit op die Here se pad te bly stap. Ek wil nie hê julle moet ophou glo nie, veral nie omdat julle nou begin ly vir julle geloof nie. Onthou, die Here het gesê dat ons vervolg sal word omdat ons glo. Toe ek nog daar by julle was, het ek dikwels gesê dat ons almal moet ly. Dit het toe presies net so gebeur. In elk geval, toe ek dit nie meer kon uithou van verlange na julle nie, het ek besluit om Timoteus na julle toe te stuur. Ek wou baie graag weet of julle nog glo. Ek was benoud dat die groot verleier julle dalk verlei het om terug te val in julle ou sondes. Dan was al ons harde werk daarmee heen. Maar toe Timoteus daar van julle af terugkom, het hy goeie nuus vir my gehad. Hy het kom vertel dat julle vertroue in die Here sterk is en dat julle vir mekaar lief is. Boonop het julle die mooiste herinneringe aan my en verlang julle om my weer te sien; net soos ek ook na julle almal verlang. Tussen al die vervolging en swaarkry deur wat ek moet verduur, het die nuus dat julle steeds glo my sommer baie moed gegee. Nou leef ek weer met ’n glimlag omdat julle steeds op die Here se pad stap. Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal? Julle verander my gebede in een groot fees! Want ek hou net aan om dank aan ons wonderlike God te bring oor julle. My lewe loop oor van vreugde oor julle! In dieselfde asem bid ek nog die hele tyd baie ernstig dat God dit vir my moontlik sal maak om weer daar by julle uit te kom. Ek wil julle baie graag weer sien. Ek moet julle geloof nog sterker maak sodat daar niks in julle geestelike toerusting sal ontbreek nie. Ek vertrou op ons God en Vader en op ons Here Jesus om my op die regte tyd daar na julle toe te laat kom. My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is. Ek bid dat julle lewe van binne af sal verander sodat julle die hele tyd net vir God sal leef. Dan sal daar nie ’n enkele krapmerk van die sonde in julle lewe te sien wees as julle op die laaste dag voor God ons Vader moet gaan staan nie. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus en almal wat aan Hom behoort, terugkeer, sal julle spesiaal aan God toegewy wees. Dit is die waarheid! My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen. Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen. God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek. Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes. God gee glad nie aan ons die reg om seksueel losbandig te leef nie. Inteendeel, ons hele lewe moet wys dat ons nou aan Hom behoort. Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê. Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om. Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie. My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie. Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom. Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie. Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo. My broers en susters, dis nie vir my nodig om met julle te praat oor presies wanneer die Here gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as Hy terugkeer nie. Julle weet teen hierdie tyd baie goed dat die dag waarop die Here terugkom net so onverwags sal plaasvind soos ’n dief wat in die middel van die nag by jou huis kom inbreek. Baie mense sal nog sê: “Ag nee wat, alles is veilig,” dan val alles rondom hulle skielik inmekaar. Hierdie mense sal begin skree van die pyn, net soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit sal niks help nie. Niemand sal op daardie dag wegkom nie. Gelukkig is ek nie oor julle bekommerd nie, my broers en susters. Julle leef nie in die donker nie; daarom sal die dag van die Here julle nie onkant betrap nie. Julle sal gereed wees, want julle leef altyd in die Here se lig. Ons as gelowiges is immers dagmense, nie nagmense nie. Ons het niks om vir Hom weg te steek nie. Ons mag nie aan die slaap wees soos daardie mense wat niks met die Here te doen wil hê nie. Nee, ons moet helder wakker wees. Ons moet reg leef. Die sonde is soos ’n slaappil. Dit sus mense aan die slaap. Daarom strompel daardie spul wat hulle aan drank oorgee soos slaapwandelaars van die een dronkpartytjie na die ander. Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek. Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Ons moet al ons vertroue in God stel om ons te lei. Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop. God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef. Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan! Broers en susters, ek wil julle mooi vra om groot respek vir al die leiers in die kerk te hê. Onthou, die Here het hulle aangestel om sy wil aan julle bekend te maak. As julle die spoor byster raak, moet hulle julle aanspreek, en as julle swaarkry, moet hulle julle vertroos. Wees baie lief vir hulle en sien op na hulle. Moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie. Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Sê vir daardie mense wat moeilikheid in die kerk veroorsaak om dadelik daarmee op te hou. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen. Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei. Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe. Ek weet God sal my gebed verhoor, want Hy hou sy woord. Toe Hy julle sy kinders gemaak het, het Hy belowe dat Hy die hele tyd by julle sal wees tot op die heel laaste dag. My liewe broers en susters, sal julle asseblief ook vir my en my helpers bid? Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas. En ek versoek julle baie ernstig in die Naam van die Here dat hierdie brief by julle byeenkomste aan al die gelowiges voorgelees word. Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd. Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Aan die kerk in Tessalonika: julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus. God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle. My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter. Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor. God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al sy sterk engele terugkom. Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en sy groot krag beleef nie. Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo. Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef. Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk. My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly. Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het. Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe. Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!” Het julle dan al hierdie dinge vergeet? Ek het dit so mooi vir julle verduidelik toe ek daar by julle was. Hierdie goddelose mens is nog nie op die toneel nie. Hy word nog teruggehou. Ek het ’n hele paar keer vir julle vertel wie dit is wat hom keer om nou al sy verskyning te maak, want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar moenie dink alles is rustig en veilig nie. Agter die skerms is die bose magte hard aan die werk. Hulle wag net vir die oomblik wanneer die een wat die goddelose figuur terughou, self van die toneel verdwyn. Dan sal daardie goddelose mens sy opwagting maak. Natuurlik sal die Here Jesus persoonlik met hom afreken. Wanneer Hy terugkom na die wêreld toe, sal Hy hierdie goddelose figuur met een asemteug wegblaas. Sy glans en glorie is genoeg om hierdie wettelose mens in ’n oogwink te vernietig. Tot by die wederkoms sal hierdie goddelose figuur met al sy bose planne besig wees. Sy krag kom direk van Satan af. Daarom sal hy in staat wees om groot wonders en vals tekens te doen. Hierdie goddelose figuur sal dit gebruik om mense te mislei. Hy sal almal wat hulle rug vir God gedraai het, aanspoor om die vieslikste sondes te doen. Dit gebeur omdat hulle die kans van ’n leeftyd deur hulle vingers laat glip het om in Christus te glo en sy verlossing te ervaar. God sal hulle toelaat om agter hierdie dwalings aan te hardloop sodat hulle al hierdie leuens uit die hel glo. Die uiteinde van almal wat weier om in die waarheid te glo en wat gekies het om hulle aan al wat sonde is oor te gee, is God se verskriklike straf. My liewe broers en susters, ek sê altyd vir God oor en oor dankie vir julle. Die Here het julle baie lief. En dis nie net lippetaal nie: God het julle al spesiaal uitgesoek om in Hom te glo. Julle is van die heel eerste mense wat tot geloof in Christus gekom het. Julle geloof is die gevolg van die Gees se werk in julle lewens. Hy het julle opsy gesit vir Homself. Daarom glo julle die waarheid. Dit is regtig net aan die Gees te danke dat julle nou glo. Toe ons die goeie nuus aan julle bekend gemaak het, het julle sy roepstem gehoor. Daarom sal julle ook deelhê aan ons Here Jesus Christus se heerlikheid. Julle sal eendag by Hom in al sy hemelse glans en glorie gaan bly. Liewe broers en susters, staan sterk! Hou vas aan alles wat ek julle geleer het toe ek daar by julle was en aan dit wat ek in my briewe skryf. God ons Vader het ons almal baie lief, ons Here Jesus Christus ook. God se goedheid oorweldig ons keer op keer. Hy droog ons trane keer op keer af en Hy gee aan ons ’n vaste hoop vir die nuwe lewe wat voorlê. Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen. Broers en susters, bid asseblief vir ons! Vra dat die Here se krag ons sal dra wanneer ons die goeie nuus bekend moet maak. Dan sal die evangelie soos ’n veldbrand deur die wêreld versprei. Bid asseblief dat God oral geëer sal word waar ons preek, presies soos wat daar by julle gebeur het. Bid ook dat al hierdie goddelose en slegte mense wat dit vir ons so moeilik maak, daarmee sal ophou. Bid dat hulle planne sal misluk, want hulle glo nie in die Here nie. Die Here is altyd getrou. Hy sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm. Omdat julle in die Here bly, weet ek julle doen alles wat ek vir julle in my briewe voorskryf. En ek weet julle sal ook aanhou om dit te doen. Mag die Here julle gedagtes aanraak sodat julle heeltyd sal fokus op God se groot liefde. En mag julle ook verstaan wat Christus alles vir ons opgeoffer het sodat julle ook enduit agter Hom sal aanstap. Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus sê ek reguit vir julle om weg te bly van daardie mense in die kerk wat in sonde lewe en hulle nie steur aan dit wat julle by my geleer het nie. Julle onthou hoe ons opgetree het toe ons by julle was. Ons het vir julle die regte voorbeeld gestel wat julle kan navolg. Ons het nie op julle nek gelê en verwag dat julle die hele tyd vir ons kos en geld moes gee nie. Nee, ons het dag en nag met ons eie hande gewerk sodat ons nie ’n las vir julle sou wees nie. Natuurlik sou ons van julle kon verwag om vir ons te sorg. Maar ons het nie op ons regte aangedring nie. Nee, ons het besluit om julle te kom dien. Op hierdie manier het ons vir julle ’n voorbeeld gestel. Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.” Ek sê hierdie dinge omdat ek gehoor het dat ’n paar gelowiges daar by julle die spoor heeltemal byster geraak het. Hulle is te sleg om te werk, en nou verwag hulle van die ander om vir hulle kos aan te dra. Boonop steek hulle hul neuse in ander se sake. Ek sê reguit vir al daardie mense, nee, ek beveel hulle in die Naam van die Here Jesus Christus: begin dadelik weer werk. Hulle moet van nou af self vir hulle gesinne sorg. Broers en susters, julle moet asseblief aanhou om goed te doen aan ander mense. Julle mag nooit moeg word daarvoor nie. Ek wil julle nog ’n keer waarsku: as mense in die kerk hulle nie steur aan dit wat ek in hierdie brief skryf nie, moet julle lig loop vir hulle. Bly weg van hulle af. Dan maak dit hulle skaam. Maar moenie sulke mense heeltemal verwerp en soos vyande behandel nie. Julle moet julle juis oor hulle ontferm. Hulle is steeds deel van God se familie. Praat daarom mooi met hulle. Die Here het vrede tussen Hom en ons gebring. Mag Hy nou ook aan julle sy wonderlike vrede gee. Mag julle dit op verrassende nuwe maniere in jul eie lewe beleef. Dink daaraan, die Here is altyd by julle almal. Ek self, Paulus, sluit hierdie brief in my eie handskrif af - soos ek in al my briewe maak. Ek, Paulus, stuur hier groete aan julle in my eie hand. Dit is die bewys dat dié brief regtig van my af kom. Tot hier toe het my sekretaris neergeskryf wat ek vir julle wou sê. Maar nou skryf ek self die slotwoorde. Die goedheid van ons Here Jesus Christus bly by julle almal. Ek, Paulus, is die skrywer van hierdie brief. Jesus Christus het my spesiaal gestuur om vir almal die goeie nuus te vertel. God, wat ons red, en Christus Jesus wou dit so gehad het. Ons vertrou mos vir Jesus om al God se beloftes vir ons waar te maak. Hierdie brief is vir jou, Timoteus. Jy is my ware geestelike seun, want jy glo ook in Jesus Christus. Mag God ons Vader, en Christus Jesus ons Here, baie goed vir jou wees, meer as wat jy verdien. Mag jy hulle warm hart van liefde elke dag ervaar en mag dit vir jou daardie wonderlike vrede gee wat ’n mens net by God en Christus kan kry. Jy onthou mos nog wat ek jou gevra het net voor ek weg is Noord-Griekeland toe. Ek het gevra dat jy in Efese moes bly. Moenie daar weggaan nie, want jy moet sorg dat daardie vals predikers end kry met al die verkeerde dinge wat hulle van God vertel. Hulle hou hulle besig met ’n klomp stories wat hulle uit die duim suig en probeer allerhande spesiale dinge uit geslagsregisters aflei. Hulle wil net ’n stryery aan die gang sit in plaas daarvan om hulle met die werk van God besig te hou. ’n Gelowige sal mos eerder God se werk wil doen. Doen dit asseblief, want dit lei tot liefde. Dit gebeur as ’n mens nie iets vir God probeer wegsteek nie en daar nie kwade bedoelings in jou is nie. Jy moet ook regtig op God vertrou en nie net maak of jy op Hom vertrou nie. Party mense vertrou nie meer op God nie, maar hou hulle eerder besig met ’n klomp gepraat wat eintlik g’n sin maak nie. Hulle wil so graag hê mense moet sê dat hulle kenners van die godsdienstige sake en wet is. Maar ongelukkig weet hulle glad nie waarvan hulle praat nie. Hulle praat asof hulle so baie weet, maar eintlik weet hulle niks. God se wet is goed, dit weet ons. ’n Mens moet dit net reg gebruik. Die wet is eintlik nie bedoel vir mense wat leef soos God dit van hulle verwag nie. Dit is vir die ander mense bedoel. Ek praat van mense wat niks omgee vir God se wet of enige reëls nie; hulle steur hulle nie aan God nie en lê in die sonde rond; hulle maak die dinge van God belaglik; hulle het so min respek vir hulle ouers dat hulle niks daarvan dink om hulle dood te maak nie, wat nog te sê van ander mense. Die wet is daar vir mense wat hulle nie aan die reëls van die huwelik steur nie en allerhande perverse seksuele dinge doen. Dit geld ook vir mense wat nie respek vir ander mense het nie en hulle ontvoer of verkoop vir geld. Die wet is ook bedoel vir leuenaars wie se woord nie hulle eer is nie of vir mense wat nie meer doen wat hulle as Christene geleer is om te doen nie. Wat het hulle geleer? Hulle het die wonderlike boodskap geleer wat ek vir ander moes vertel. Dit gaan oor hoe groot en goed God is. Ek is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie werk vir Hom te doen. Hy gee my ook die krag om dit te kan doen. Hy het my die werk gegee om te doen al het ek vroeër lelike dinge oor Hom gesê, sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak. Maar God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie. Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet. Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie: Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ’n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou. Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. Hy is ons Heerser vir altyd; niemand kan Hom sien nie en Hy gaan ook nie dood nie. So is dit en so sal dit bly. Timoteus, my seun, laat ek vir jou verduidelik wat ek wil hê jy moet doen. God het mos ’n profesie gegee oor wat jy aan party mense in die gemeente gaan doen. Hulle het dit vir die gemeente vertel. As jy dit doen, sal jy ’n wenner wees. Moenie iets doen waaroor jy sleg sal voel nie en vertrou Jesus Christus. Party mense wou niks weet van hierdie dinge nie en verkeerde dinge het hulle later nie meer gepla nie. Daarom is daar ook niks van hulle Christenskap oor nie en hulle vertrou ook nie meer op Jesus nie. Dis die pad wat mense soos Himeneus en Aleksander geloop het. Daarom het ek hulle verbied om in die gemeente te kom. Hulle moet uitvind hoe dit is om sonder die Here klaar te kom sodat hulle kan leer om nie lelike dinge oor God te sê nie. Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor. Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ’n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef. So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is. Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê. Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie. As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie. Vroue moet ook ordentlik aantrek sodat hulle nie die verkeerde boodskap vir ander mans gee en so hulle eie man in die verleentheid bring nie. Hulle moet so aantrek dat God en hulle man tevrede sal wees. Vroue wat geen geheim daarvan maak dat hulle die Here dien nie, moet hulle lewe eerder versier met al die goeie dinge wat hulle vir ander mense doen. Dit maak hulle baie mooier as wat duur klere of mooi juwele dit ooit kan doen. ’n Vrou moet ook nie voor op die wa wees en iets anders wil wees as wat sy is nie. Sy moet in stilte gewillig wees om te leer. Ek wil nie hê dat vroue die mans se werk moet doen terwyl hulle besig is om die gemeente te leer nie. Hulle moenie probeer baasspeel oor die mans nie, maar eerder stil sit en luister. God het Adam eerste gemaak en daarna vir Eva. Satan het ook nie vir Adam in die strik ingelok nie, maar vir Eva. Hy het haar uitgevang en sy het toe iets gedoen waarvan God niks gehou het nie. Gelukkig vir haar vergoed sy weer daarvoor deur kinders te hê, mits sy natuurlik op God bly vertrou. Sy moet God ook liefhê en net vir Hom lewe. Wat ek nou sê, staan soos ’n paal bo water: as iemand baie graag ’n leier in die gemeente wil wees, wil hy ’n belangrike en goeie werk in die gemeente doen. Daarom kan nie enigiemand ’n leier wees nie. Daar moet niks slegs oor so ’n persoon gesê kan word nie. Hy moet getrou wees aan sy vrou en nie uitspattig lewe nie. Hy moet nie ongeërg wees en niks omgee vir wat hy doen nie. Hy moet ordentlik lewe en ander Christene help waar hy kan, selfs al vra hulle hom vir blyplek. Verder moet hy ’n goeie onderwyser wees, want hy sal ander van God moet leer. Hy moet ook nie ’n drinker of ’n bakleier wees nie. In plaas daarvan dat hy die hele tyd skoorsoek, moet hy eerder vriendelik wees. Geld moet ook nie sy baas wees nie. Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister. (As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?) Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink. Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen. Net so moet diakens mense wees wat by ander respek afdwing en op wie ’n mens kan peil trek. Hulle moet nie aan alkohol verslaaf wees of in besigheid oneerlike wins probeer maak nie. Verder moet die diep waarhede van God waarin hulle glo, hulle hele lewe vol maak. Hulle moet opreg wees en niks moet hulle gewete pla nie. Voordat hulle diakens word, moet die gemeente eers seker maak of hulle dit kan word. Die gemeente moet moeite doen om te kyk of daar nie slegte gerugte die rondte doen oor die moontlike diakens nie. As daar nie klagtes is nie, kan die persone as diakens aangestel word. Vroue wat in die gemeente help, moet ook respek afdwing by ander. Hulle moenie skinder en uitspattig lewe nie. ’n Mens moet ook op hulle kan peil trek. ’n Diaken moet getrou bly aan sy vrou en moet ’n goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders wees. As hy sy werk in die gemeente goed doen, sal die mense hom respekteer. Hy sal sonder om bang of onseker te wees sy werk doen omdat hy in Christus Jesus glo. Ek hoop om gou weer na julle toe te kom. Ek skryf hierdie dinge vir jou sodat as ek miskien nie so gou kan kom nie, jy sal weet hoe mense hulle in God se huisgesin moet gedra. Die gemeente van die lewende God is hierdie huisgesin. Die gemeente het nie alleen die waarheid nie, maar moet ook sorg dat die waarheid nie verdraai word nie. Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: “Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.” Die Heilige Gees het baie duidelik gesê dat in die tyd voor die Here weer kom party mense niks meer met geloof te doen sal wil hê nie. Hulle sal eerder agter geeste aanhardloop wat hulle op verkeerde paaie lei en sal gretig luister na wat demone vir hulle vertel. Dit sal gebeur wanneer hulle hulle ore uitleen aan mense wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg. Hierdie mense sal nie eens omgee om hulle op allerhande verkeerde paaie te lei nie, want hulle het geen gewete meer oor nie. Hulle sal nie eens sleg voel oor al die godsdienstige onsin wat hulle verkoop nie. Dink net, hulle sê mense mag nie trou nie en vertel vir hulle dat hulle sekere kos nie mag eet nie. Wat hulle vergeet, is dat God alles gemaak het, ook die kos. Ons wat op God vertrou en weet wat waar is en wat nie, eet daardie selfde kos sonder enige probleme, want God het dit mos gemaak. Om die waarheid te sê, ons sê ook nog vir Hom dankie daarvoor. En dit is reg so, want alles wat God gemaak het, is goed. ’n Mens hoef nie jou neus op te trek vir enigiets as jy vir God daarvoor dankie sê nie. God self het vir ons gesê dat alles wat gemaak is Syne is. Deur gebed sê ons vir Hom dat ons Hom erken as die Een wat alles gemaak het. Jy sal doen wat Christus Jesus van jou as sy werker vra as jy die mense van hierdie gevare vertel. Die boodskap waarin jy glo, moet jou sterk maak. Jy het mos die Christelike leer aanvaar. Juis daarom moet jy jou nie steur aan al die stories wat mense uitdink en wat eintlik niks met God te doen het nie. Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms. Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid. Hiervoor probeer ons ons uiterste bes en ons werk hard daarvoor. Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou. Jy moet vir mense hierdie dinge leer en vir hulle sê om dit te doen. Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ’n Christen moet praat en wat ’n Christen moet doen. Ja, wys vir hulle hoe ’n Christen moet liefhê en op God en Christus moet vertrou, en hoe skoon ’n Christen se lewe moet wees. Hou aan om vir mense uit die Skrif voor te lees en praat met hulle daaroor sodat hulle ook meer van God se boodskap kan verstaan. Moenie ophou of vergeet om die gawe te gebruik wat God jou so onverdiend gegee het nie. Dit is die gawe wat God jou gegee het toe die leiers in die gemeente hulle hande op jou gesit het omdat God mense gelei het om sulke mooi dinge oor jou te voorspel. Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word. Maak doodseker dat jy reg lewe en ander so leer. Moenie ’n duim van hierdie pad afwyk nie. As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê. Moenie te kwaai met ’n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer. Kyk mooi na die weduwees wat werklik niemand het om vir hulle te sorg nie. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet jy hulle leer dat godsdiens in jou eie huis begin. Om vir jou eie familie te sorg en op dié manier dankie te sê vir wat jou pa en ma of ouma en oupa alles vir jou gedoen het, is godsdiens in aksie. Daarvan hou God baie. ’n Weduwee wat nie iemand het om haar te help nie, het net vir God oor om te vra. Sy vertrou God heeltemal en vra dag en nag dat Hy haar asseblief moet help. Daar is egter ook weduwees wat deur allerhande plesiere van die lewe aan die lewe probeer bly, maar so ’n vrou is geestelik morsdood, al lewe haar liggaam nog. Sê dit vir die families sodat hulle nie onnodig die verkeerde dinge doen nie. As iemand nie meer na sy eie mense wil omsien nie en veral nie meer vir sy gesin wil sorg nie, moet hy nie sê dat hy in die Here glo nie. Hy tree slegter op as iemand wat sommer reguit sê dat hy nie in die Here glo nie. Wie kan nou kwalifiseer vir die lys weduwees? ’n Vrou wat 60 is, kan op die lys kom, maar dan moes sy getrou gewees het aan haar man. Sy moet bekend wees vir die goeie lewe wat sy lei. Sy moes mooi na haar kinders gekyk en hulle goed grootgemaak het. Mense moes altyd by haar welkom gevoel het en sy moes altyd gewillig gewees het om ander te dien, al was die takie hoe nederig. Sy moes altyd daar gewees het om te help as iemand hulp nodig gehad het. Die leuse van haar lewe moet wees: doen goed aan ander. Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie. Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het. Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie. Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie. So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop. As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie. Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal. In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.” Moenie julle aan allerhande stories oor ’n leier in die gemeente steur nie, tensy dit bevestig word deur twee of drie ander mense. As iemand iets verkeerds gedoen het, moet daar voor almal streng met hom oor sy fout gepraat word. Dit sal ander help om nie dieselfde fout te maak nie. Ek vra jou baie mooi, maar tog baie ernstig voor God, Jesus Christus en al die hemelse wesens: as jy teen ’n leier van die gemeente optree, moet jy niemand voortrek nie. Dat jy miskien van een meer hou as van ’n ander, mag nie by jou ’n rol speel nie. Jy moet almal gelyk behandel. Moenie te gou sê dat iemand maar ’n leier in die gemeente kan word nie. Sê nou net sy lewe is nie reg nie en hy doen verkeerde dinge, dan sal die mense daaruit aflei dat jy dit goedkeur. Nee, jy moet op alle maniere uit die pad van die sonde bly. Jy hoef nie net water te drink nie. Jy kan maar ook ’n bietjie wyn drink vir jou maag en al die ander kwale wat jy kort-kort het. In die gemeente werk dit so: party mense doen sommer oop en bloot dinge waarvan God nie hou nie. Almal weet daarvan nog voor die saak behoorlik ondersoek is. Ander doen dit weer stilletjies en in die geheim. ’n Mens hoor eers later daarvan as dit ondersoek word. Dieselfde geld vir die goeie dinge wat ’n mens doen. Almal kan dit sien en weet daarvan. Maar selfs al weet mense nie dadelik daarvan nie, sal hulle wel die een of ander tyd agterkom wat gedoen is. Christene wat slawe is, moet hulle baas met respek behandel. Hulle moenie enigiemand rede gee om iets slegs te sê van God of van al die dinge wat ons oor Christus leer nie. As die baas ook ’n Christen is, moet die slaaf nie dink dat hy die baas met minder respek hoef te behandel omdat hulle saam aan God se geestelike familie behoort nie. Christenslawe moet eerder nog beter werk, want hulle werk vir mede-Christene vir wie hulle lief is. Wat hulle doen, is mos tot ’n ander Christen se voordeel. Al hierdie dinge moet jy vir mense leer en hulle motiveer om dit te doen. Sê nou iemand wil julle meer oor die godsdiens leer, maar hy vertel net ’n klomp stories wat nie waar is nie. Dit is glad nie wat die Here Jesus Christus vir ons vertel en geleer het nie. Na so iemand moet jy nie eens luister nie. Hy self dink natuurlik hy weet baie, maar eintlik weet hy niks. Hy sal gewoonlik oor alles wil stry en ’n yslike argument begin oor wat ’n spesifieke woord nou juis beteken. Hierdie ongesonde houding van hom sal maak dat mense later vies raak vir mekaar. Hulle sal jaloers op mekaar word, lelike dinge van mekaar sê en mekaar so verdag maak. Hulle sal aanmekaar stry en baklei omdat hulle deurmekaar is. Hulle sal nie meer mooi kan dink nie en dan nie meer weet wat waar is nie. Hulle dink dat godsdiens eintlik daar is om geld mee te maak. Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander. Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie. Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. Hy leef vir altyd. Ons kan nie by sy blyplek kom nie, want dit is omgewe deur ’n helder lig. Daarom het niemand Hom nog ooit gesien nie en kan niemand Hom sien nie. Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar! Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. ’n Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie. Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. Hy sal sorg dat ons alles kry wat ons nodig het om van te leef. Praat mooi met die ryk mense. Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het. So sal hulle soveel goeie dinge doen dat hulle in die oë van God en die mense baie ryk sal wees, nie omdat hulle baie geld het nie, maar omdat hulle soveel goeie dinge gedoen het. So belê hulle eintlik in die bank van God. Dit is die beste belegging waaraan ’n mens kan dink, veral vir die toekoms. So sal die ryk gelowige ook die ware lewe by God hê. Liewe Timoteus, kyk mooi na alles wat jy gevra is om te doen. Moenie jou tyd mors met die gepraat wat niks met God te doen het nie. Wees versigtig vir daardie klomp wat met hulle deurmekaar redenasies wil voorgee dat hulle so wetenskaplik en slim is. Party van die gemeentelede het agter hulle aangeloop. Só het hulle eintlik weggeloop van hulle vertroue op God. Mag God baie goed wees vir julle, meer as wat julle verdien. Ek, Paulus, het hierdie brief geskryf. Ek is deur Christus Jesus gestuur omdat God dit so wou hê. Ek moet vir almal vertel dat dié wat in Christus Jesus glo altyd saam met God sal leef. God het dit beloof. Ek skryf die brief vir my geestelike kind, Timoteus, vir wie ek so lief is. Mag God die Vader en Christus Jesus ons Here vir jou baie goed wees en jou in sy liefde omvou. Mag jy die vrede ervaar wat net Hulle vir mense kan gee. Soos my voorouers God gedien het, dien ek Hom ook met ’n skoon gewete omdat ek my plig gedoen het. Wanneer ek met hierdie God in gebed praat, dink ek ook aan jou, maak nie saak of dit dag of nag is nie. Ek sê dan vir Hom baie dankie vir jou. Ek onthou nog hoe jy gehuil het toe ek laas daar weg is. Ek verlang baie na jou en dit sal vir my baie lekker wees om jou weer te sien. Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle. Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande op jou gelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word. Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie. God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan. Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het. God het my aangestel en gestuur om hierdie goeie nuus vir almal te gaan vertel en aan hulle te verduidelik wat dit presies vir hulle beteken. Daarom sit ek nou ook hier in die tronk, maar moenie dink ek is skaam daaroor nie. Nee, ek weet mos op wie ek my vertroue stel. Ek twyfel nie een oomblik daaraan dat God self na alles sal kyk wat Hy vir my gegee het om te doen nie. Hy sal daarvoor sorg tot Christus Jesus weer kom. Jy onthou seker nog hoe ons oor al die dinge van die Here gepraat het. As jy oor iets wonder, dink terug daaraan en laat jou lei deur wat ek gesê het. Vertrou op die Here en wees lojaal teenoor Hom en almal wat Syne is. Kyk mooi na al hierdie pragtige dinge wat God vir jou gegee het. Die Heilige Gees wat in elkeen van ons is, sal jou help om dit goed op te pas. Jy het seker gehoor dat al die Christene wat uit Asië kom, my hier in die steek gelaat het, onder andere ook Figelus en Hermogenes. Onesiforus was egter nie skaam dat ek hier in die tronk sit nie. Hy het gereeld vir my kom kuier. Mag God daarom ook vir hom en sy huisgesin baie liefde bewys en goed wees vir hulle. Om die waarheid te sê, toe hy hier in Rome aangekom het, het hy sonder ophou na my gesoek tot hy my gekry het. Jy self weet ook mos hoe hy my in Efese gehelp het. Mag die Here vir hom baie goed wees wanneer Hy weer kom. My liewe seun, al die goeie dinge wat God jou so onverdiend gee omdat jy ’n Christen is, moet jou motiveer en sterk laat staan. Jy en baie ander het gehoor wat ek alles oor die Christelike dinge vertel het. Vertel dit nou weer vir mense wat jy kan vertrou sodat hulle dit weer vir ander kan vertel. Ons kan sê jy is soos ’n soldaat van Christus. ’n Soldaat van Christus sal nie omgee om saam met die ander soldate swaar te kry vir Christus nie. ’n Soldaat se werk is om te doen wat sy bevelvoerder vra. Hy moet hom nie besig hou met allerhande ander dingetjies wat niks met sy werk as soldaat te doen het nie. Laat ek nog ’n voorbeeld gee. Sê nou ’n atleet neem aan ’n resies deel. Hy sal net kan wen as hy al die reëls mooi nagekom het, anders word hy gediskwalifiseer. Of dink aan dié voorbeeld: ’n boer wat hard werk, kan darem seker eerste van die vrugte van die oes proe. Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan. Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Koning Dawid was sy voorvader. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak. Dit is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie. Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees. Dit is iets wat niemand van ons kan wegvat nie. Dit sal vir ewig duur. Ek praat die waarheid: as ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef. As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê. As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie. Herinner die gelowiges gedurig aan hierdie dinge. Waarsku hulle met God as getuie dat die stryery oor wat sekere woorde kwansuis sou beteken ’n einde moet kry. Dit bring ’n mens nêrens nie en bou nie dié wat daarna luister op nie, maar breek hulle eerder af. Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie. Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal. Die dinge wat hulle vertel, sal mense geestelik baie seermaak, soos iemand wat kanker kry en al hoe sieker word. Himeneus en Filetus is so, want hulle het ook die spoor heeltemal byster geraak en ken nie meer die waarheid nie. Hulle kom met die storie dat mense al klaar uit die dood opgestaan het. So breek hulle party mense se geloof tot in die grond af. Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.” In ’n spoggerige huis kry ’n mens allerhande voorwerpe. Daar is pragtige goue of silwerbakke. Hulle word net by spesiale geleenthede uitgehaal en gebruik. Daar is ook bakke wat sommer van hout of klei gemaak is en wat elke dag gebruik word. Net so gaan dit in die geestelike lewe. As iemand ontslae geraak het van al die verkeerde dinge in sy lewe en God het hom vergewe, is hy so spesiaal soos een van daardie mooi, duur bakke. Hy sal net aan die Here behoort en sal reg staan sodat sy Here hom vir enigiets kan gebruik, net waarvoor sy Here hom nodig het. Maak dat jy wegkom van al die verkeerde dinge wat vir ’n jongmens so lekker lyk en wat hy dan so graag wil doen. Gebruik liewer jou energie op ’n ander manier. Probeer liewer reg lewe, op God vertrou en lojaal wees teenoor Hom en die ander Christene. Bewaar die vrede en werk saam met almal wat in ’n opregte verhouding met die Here staan. Moenie in belaglike argumente betrokke raak en met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle aan die baklei raak. Iemand wat vir die Here werk, moet nie baklei nie. Nee, hy moet liewer gaaf wees met almal. Hy moet liewer ’n goeie onderwyser van God se dinge wees en hom nie vererg as ander iets verkeerds teen hom doen nie. As ander met hom wil stry oor wat God sê, moet hy hulle mooi op die regte pad help. Dit kan wees dat God hulle hulle foute sal laat insien sodat hulle van opinie verander en dan aan die kant van die waarheid sal kom staan. Hulle sal besef dat hulle op die verkeerde pad was. Hulle sal die boeie breek waarmee Satan hulle geestelik gedwing het om net te doen wat hy wou gehad het. Een ding moet julle nie vergeet nie: dit sal verskriklik gaan net voor die Here weer kom. Ek gaan ’n lysie maak van wat mense dan alles sal doen. Elkeen sal net aan homself dink en niks vir ander omgee nie. Geld gaan vir hulle alles in hulle lewe word. Hulle gaan ’n klomp grootmonde wees wat dink hulle is beter as ander mense. Hulle sal nie omgee om ander mense baie seer te maak met hulle beledigings nie en hulle sal hulle nie meer steur aan hulle ouers nie. Hulle sal ondankbaar wees en niks vir God omgee nie. [3-4] Liefde sal nie deel uitmaak van hulle woordeskat nie, maar hulle sal alte goed weet hoe om ’n wrok teen ander te dra, of om lelike stories oor ander te versprei. Hulle sal spesialiseer daarin om net te doen wat hulle wil sonder om om te gee wat gaan gebeur, selfs al beteken dit dat hulle op so ’n manier mense buitengewoon seermaak. Moenie vir hulle voorstel om iets goeds te doen nie, want hulle haat dit. Jy sal hulle glad nie kan vertrou nie, want hulle sal jou om die eerste draai in die rug steek. Hulle sal nie omgee om deur hulle optrede ander mense in gevaar te stel nie en boonop sal hulle dink dat hulle baie beter is as ander mense. Hulle sal die poele van plesier kies eerder as vir God. *** Van buite af sal dit lyk of hulle kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees, sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af. Party van hulle gaan bly as gaste in die huis van gelowiges. Hulle bewerk dit dan so dat ’n vrou wat byvoorbeeld maklik iets glo, aan hulle lippe begin hang. Omdat so ’n vrou nie ’n sterk persoonlikheid het nie, pla die dinge wat sy in die verlede gedoen het haar en buitendien begeer sy allerhande lelike dinge. Hierdie vroue stel altyd vreeslik belang om iets nuuts te hoor, maar hulle kom nooit by die waarheid uit nie en weet ook nie wat waar is en wat nie waar is nie. Net soos Jannes en Jambres, die towenaars van die farao, Moses se teëstanders was, so is hierdie mense die waarheid se teëstanders. Hulle is deurmekaar en heeltemal van die spoor af, veral as dit oor die dinge van die geloof gaan. Hierdie mense sal nie baie ver kom nie. Mense sal deur hulle sien soos hulle destyds deur Jannes en Jambres gesien het. Hulle sal sien dat hierdie mense nie weet waarvan hulle praat nie. Timoteus, jy ken my baie goed. Jy weet alles wat ek vir mense vertel van God en Christus. Jy weet hoe ek leef, wat ek van die lewe wil hê, hoe ek op Jesus vertrou en hoeveel tyd ek vir ander mense het. Jy ken ook my liefde vir ander en weet hoe geduldig ek met mense kan wees. Ook my seerkry en swaarkry ter wille van Jesus ken jy. Jy onthou mos nog wat met my in Antiogië, Ikonium en Listra gebeur het. Hoe het hulle my nie probeer seermaak en vervolg nie! Maar die Here self het daarvoor gesorg dat ek veilig uit al hierdie dinge gekom het. Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie. Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het. Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk. Christus Jesus gaan as regter besluit wat eendag met die mense gaan gebeur, of hulle nog lewe en of hulle al dood is. Hy gaan weer kom en soos ’n koning kom heers. Met God en Jesus as getuie sê ek vir jou: vertel vir almal die boodskap van God. Jy moet altyd reg wees om dit te doen, maak nie saak wanneer nie. As ander ’n klomp onsin vertel, help hulle reg. As hulle nie wil luister nie, praat kwaai met hulle en as iemand moedeloos is, praat hom moed in. Wees geduldig terwyl jy mense stap vir stap help om God se dinge beter te verstaan. Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewer na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor. Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het. Maar jy moet nie dieselfde fout maak nie. Bly wakker en hou altyd kop. As dit jou in die moeilikheid bring, moenie bang word nie, maar hou aan om die mense van God te vertel, want dit is jou werk. Doen alles goed wat jou werk van jou vra. My tyd word nou ook min. Ek het nie meer lank om te lewe nie, dan gaan my lewe ’n offer vir God word. As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen. God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen. Ek het Tigikus Efese toe gestuur. Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê. Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken. Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak. Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie. Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered. Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees. Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus. Erastus het in Korinte gebly en Trofimus het siek geword; ek moes hom toe in Milete los. Probeer asseblief om na my toe te kom voor die winter hier is. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander Christene sê ook groete. Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien. Van Paulus. Ek is ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel. Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God. Dit bring groot sekerheid in hulle harte dat die ewige lewe op hulle wag. Nog lank voordat die wêreld daar was, het God al beloof dat Hy vir almal wat in Hom glo, ’n groot geskenk het: die ewige lewe! Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie! Titus, hierdie brief is aan jou gerig. Jy is vir my soos my eie kind, want jy glo ook. Ons al twee is nou deel van God se nuwe familie. Die goedheid en vrede van God ons Vader en Christus Jesus, ons Verlosser, is ook by jou. Ek het jou vroeër op die eiland Kreta agtergelaat. Dit was met ’n spesifieke doel. Ek wil hê jy moet sorg dat sake in die verskillende gemeentes reg en goed georganiseer is. Verder moet jy ook in die verskillende dorpe ouderlinge aanstel soos ek vir jou gesê het. ’n Kerkleier se ganse lewe moet wys dat hy die Here ken. Hy moet getrou wees aan sy vrou. Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie. Onthou, ’n ouderling staan aan die stuur van God se familie van gelowiges hier op aarde. Sy ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê. Hy moenie vol van homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie. Drank mag nooit sy baas wees nie. Hy moenie net regstaan om te stry en baklei nie. Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie. Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen. Hy moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy reg optree. Hy moet leef soos die Here wil hê. Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie. Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos. Maar hy moet hierdie kennis ook gebruik om mense wat vals leerstellings verkondig te wys dat hulle verkeerd is. Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here. Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat. Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo. Julle moet hulle so gou moontlik stilmaak en hulle leuens stopsit, want hulle keer omtrent al wat huis is met hulle vals praatjies om. Hulle doen dit om onskuldige mense se geld in die hande te kry. Hierdie spul se skelmstreke laat my dink aan wat een van hulle eie profete gesê het: “Die klomp wat op Kreta bly, is heeltemal onbetroubaar. Hulle is so onbeheerbaar soos wilde diere. Hulle is ’n klomp luiaards wat niks wil doen nie en hulleself heeltyd ooreet.” Hoe reg was hy nie! Daardie mense wat die goeie nuus verdraai, moet jy asseblief vasvat. Sê hard en duidelik vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is. Dalk maak dit hulle oë oop sodat hulle reg in God kan begin glo. Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan. Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie. As die Here ’n mens vrygemaak het, hoef jy nie meer al die wette en reëls van daardie mense te gehoorsaam nie. Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte “godsdiens”. Hulle kom dit nie eens agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde. Hulle sondige geaardheid maak dat hulle verkeerd dink. Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg. Want wat hulle doen, sê iets heeltemal anders. Hulle vang die verskriklikste dinge aan. Hulle luister glad nie na wat God sê nie. Hierdie mense doen nie ’n enkele ding wat sy hart bly maak nie. Titus, gebruik elke kans wat jy het om die regte feite oor God aan ander bekend te maak. Verduidelik vir die ouer mans dat hulle nie mag toelaat dat die sonde hulle aan die slaap sus nie. Hulle moet so leef dat ander mense groot respek vir hulle het. Hulle moet met wysheid optree. Hulle moet onwankelbaar in die Here glo, sy liefde uitleef en volhard op die regte pad. Praat ook met die vroue in die kerk wat al ouer is. Sê vir hulle dat hulle lewe moet wys dat hulle die Here ken. Hulle mag niks leliks van ander mense sê nie. Hulle mag ook nie te veel drink nie. Hulle moet ander gelowiges leer wat God van hulle verwag, veral vir die jonger vroue. Hulle moet vir hierdie vroue sê dat hulle baie lief vir hulle mans en kinders moet wees. Verder moet hulle ook vir hulle leer om met wysheid op te tree en om hulle nie aan buitehuwelikse verhoudings skuldig te maak nie. Hulle moet ook vir jonger vroue sê om goed na hul gesinne se behoeftes om te sien en om in liefde op te kyk na hul mans. Dan sal God se Woord nie bespotlik gemaak word nie. Titus, jy moet ook met die jonger mans in die kerk praat. Sê vir hulle om met wysheid op te tree. Wat jou betref, jy moet in alles wat jy sê en doen ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christen behoort te leef. Doen goed aan ander mense. Maak God se wil op die regte manier bekend. Tree altyd met integriteit op. As jy sorg dat alles wat jy sê in ooreenstemming is met God se wil, sal selfs jou vyande niks leliks teen ons geloof kan sê nie. Praat ook met werkers en diensknegte wat vir ’n eienaar werk. Sê vir hulle hulle moet respek vir hulle eienaars hê. Hulle moet al die opdragte uitvoer wat aan hulle gegee word. Hulle moenie teëpraat nie. Ook moet hulle nie dinge steel nie sodat ander moet kan sien dat hulle in alles eerlik en betroubaar is. Dan wys hulle dat hulle geloof nie net ’n klomp dooie reëls op papier is nie. So word die leer oor ons wonderlike God en Verlosser nog meer aantreklik. God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef. Hy laat ons elke dag tot sy eer in die wêreld leef. Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie! Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê! Titus, al hierdie dinge wat ek vir jou in dié brief skryf, moet jy aan die ander gelowiges meedeel. Doen dit met die gesag wat die Here aan jou as geestelike leier gegee het. Praat mooi met hulle. Wanneer dit nodig is, moet jy ook streng wees. Vat die sondaars vas. Moenie toelaat dat mense met jou spot of op jou neersien nie. Sê baie duidelik vir die gelowiges om te luister na alles wat die owerhede sê. Hulle mag nie in opstand kom teen mense wat in leiersposisies is nie. Hulle moet ook elke kans aangryp wat hulle kry om goed te doen. Leer hulle ook om nie van ander mense sleg te praat nie. Hulle moenie moeilikheid soek nie. Nee, hulle moet vriendelik en sensitief wees. Hulle moet met deernis teenoor almal optree. Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig. Haat en geweld was ons meester. Ons het ander mense niks gegun nie. Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk: God ons Verlosser het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het. Sy goedheid was nie lippetaal nie. Nee, Hy het ons verlos. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed geleef het sodat Hy ons moes verlos nie. Nee, Hy het dit gedoen omdat Hy ons baie jammer gekry het. God het ons heeltemal nuut gemaak. Ons is ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het. Toe is al ons sondes afgewas. God het ook deur die Heilige Gees nuwe lewe aan ons gegee. God het ook nie net ’n klein stukkie van die Heilige Gees aan ons gegee nie. Nee, deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser, het Hy die Heilige Gees in sy volheid oor ons uitgegiet. Omdat Hy so goed is vir ons, het Hy al ons sondes afgeskryf. Dit tel nie meer teen ons nie. Ons is nou God se erfgename. Ons erfporsie is die ewige lewe. Ons is volspoed onderweg daarheen. Wat ek nou vir jou gesê het, is die waarheid. Ek wil hê jy moet dit met groot oortuiging vir die gelowiges gaan oorvertel. Hulle moet mooi begryp wat God alles vir ons gedoen het. Dit sal hulle aanspoor om reg te leef. As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen. Hulle sal ander begin dien en op die hande dra. Titus, nog ’n stukkie persoonlike raad aan jou: moenie in argumente betrokke raak met ander mense wat probeer om ons geloof belaglik te maak nie. Vermy ook ’n stryery met diegene wat sê dat net ware Israeliete deur God gered sal word as hulle oor die nodige geslagsregisters beskik om dit te bewys. Moet ook nie jou tyd mors om met ander te stry oor hoe ons die wet van Moses moet probeer hou nie. Al hierdie gesprekke en argumente help net mooi niks nie. Dis ’n mors van kosbare tyd. Loop lig vir daardie mense wat moeilikheid maak. Sê vir hulle om op te hou daarmee. As dit nie help nie, gaan probeer ’n tweede keer. Maar daarna moet jy hulle uitlos. Dan weet jy dat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle eie sondes sal op die ou end teen hulle tel. Titus, ek sal binnekort vir Artemas, of dalk vir Tigikus, na jou toe stuur om jou te kom help. Sodra een van hulle daar is, moet jy asseblief vir my kom kuier. Ek bly in Nikopolis oor vir die winter. Kom hiernatoe. Daar kom ook twee mans na jou toe oor wie jy jou moet ontferm. Hulle name is Senas, ’n regsgeleerde, en Apollos. Maak jou hart en jou huis vir hulle oop. Kyk dat hulle ’n dak oor hulle kop het en ook iets om te eet. Sê ook vir die gelowiges om self te werk vir hulle eie brood. Deur goeie werk moet hulle in hul eie lewensbehoeftes voorsien. Hulle moet soos bome wees wat goeie vrugte vir die Here dra. Titus, al die gelowiges hier by my stuur vir jou groete. Sê asseblief ook groete aan al die gelowiges daar by jou. God se goedheid bly by julle almal. Van Paulus. Ek is op die oomblik in die tronk omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus bekendmaak. Timoteus, my broer in die Here, is ook hier by my. Ek skryf hierdie brief aan jou, Filemon, my liewe vriend wat saam met my in die Here se diens staan. En ook aan Affia, ons suster in die Here. En aan Argippus, wat hard saam met ons veg in die Here se werk. Ook aan almal in die gemeente wat gereeld daar in jou huis bymekaarkom. God ons Vader en die Here Jesus Christus skenk aan julle almal genade en vrede. Filemon, ek dink gedurig aan jou en ek bid so baie vir jou. Ek sê elke keer vir God baie dankie wanneer ek aan jou dink, want ek hoor net die wonderlikste dinge van jou. Almal praat van jou onverskrokke geloof in die Here Jesus en van jou liefde vir Hom en vir ander gelowiges. Ek bid dat jou verhouding met my as jou broer in die geloof jou nog meer sal laat besef watter goeie dinge God aan ons geskenk het. Dit is ons deel omdat ons in Christus glo. My liewe vriend, jou liefde vir ander Christene is vir my ’n riem onder die hart. Dit bring groot vreugde en troos vir my. Jy het al so baie beteken vir mense wat God dien. Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra. Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus. My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het. Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken. Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan. Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is. Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit. Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het. Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug. Filemon, as jy my as jou vriend en medestryder in die evangelie beskou, moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom presies net soos jy my sou ontvang. As hy vroeër iets daar by jou gevat het, of as hy jou nog enige geld skuld, moet jy dit maar op my rekening sit. Daarom skryf ek, Paulus, hier groot en duidelik: “EK SAL ALLES BETAAL.” Terloops, voordat jy rekenings begin uitskryf, ek hoef jou seker nie te herinner aan wat jy my nog alles skuld nie, of hoe? Jy is jou ganse nuwe lewe as gelowige aan my verskuldig. My liewe broer in die Here, bewys my tog hierdie groot guns. Neem Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie ter wille van myself nie, maar ter wille van die saak van die Here. As jy dit doen, sal my hart oorloop van vreugde as jou broer in Christus. Filemon, ek vertrou jy sal doen wat ek jou vra; daarom dat ek hierdie brief aan jou skryf. Eintlik weet ek dat jy nog baie meer sal doen as wat ek van jou vra. Jy kan ook solank jou gastekamer vir my begin gereedmaak. Binnekort kom ek weer daar na julle toe. Julle bid mos lankal tot God dat ek vrygelaat word en weer na julle toe kom. Epafras, wat ook hier saam met my in die tronk sit ter wille van sy geloof in Christus Jesus, stuur groete vir jou. So ook my helpers: Markus, Aristargos, Demas en Lukas. Ons Here Jesus Christus se goedheid is by elkeen van julle. Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun, aan wie God alles gegee het. Deur hierdie Seun het God alles gemaak wat bestaan. Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe. Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle. Daar is nie enige hemelse wese oor wie God ooit die dinge gesê het wat Hy oor sy Seun gesê het nie. Vir wie van hulle het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; Ek is jou Vader van vandag af,” of: “Ek is sy Vader en Hy is my Seun”? God het hierdie Seun van Hom die spesiale ereposisie as die oudste Seun gegee. Dit is ’n besondere voorreg. God sê dan: “Al die hemelse wesens moet Hom dien soos hulle My dien.” Wanneer God van die hemelse wesens praat, sê Hy wel: “God maak sy boodskappers soos die wind en sy dienaars soos weerligstrale.” Maar van sy Seun sê Hy: “U, o God, sal vir ewig en altyd heers. Soos ’n koning sal U vir altyd goed en reg regeer. U hou van dinge wat reg is en wil niks te doen hê met dinge wat verkeerd is nie. God het U gevra om oor alles te heers, terwyl almal baie bly was daaroor. Nie een van die ander wat saam met U daar was, het ’n kans gestaan nie.” God sê nog ander dinge ook oor sy Seun. Hy sê: “Here, U het alles begin. U het die aarde gemaak. Met u hande het U die hemel sy vorm gegee. Al hierdie dinge sal eendag vergaan en nie meer daar wees nie. Soos ’n stuk klere stukkend gaan en uiteindelik weggegooi word, so sal al dié dinge ook eendag verdwyn, maar U sal vir altyd daar wees. Soos klere sal U alles wat gemaak is, opvou en iets anders in die plek daarvan sit. U bly egter vir ewig en altyd dieselfde. U word nooit oud nie en sal ook nooit doodgaan nie.” Luister ’n bietjie, het God ooit dít van die hemelse wesens gesê: “Sit hier op die spesiale ereplek langs My tot Ek al jou vyande magteloos voor jou laat lê”? Is die hemelse wesens nie eintlik maar net geeste wat God stuur om sy mense te help nie? Ons moet wat ons gehoor het nie so ligtelik opneem nie. Ons moet ernstig daaroor wees sodat ons nie dalk op die verkeerde pad beland nie. Die boodskap wat voorheen deur hemelse wesens aan die mense verkondig is, was natuurlik nie sommer stories nie. Mense het daarna geluister en wie hulle nie daaraan gesteur het nie, is gestraf soos dit hoort. As dit so was, watter kans het ons dan om los te kom as ons die wonderlike verlossing ignoreer wat Jesus bring? Die Here het self begin om mense te vertel hoe hulle weer by God kan uitkom. Mense wat Hom hierdie dinge hoor sê het, het dit weer vir ons kom vertel. Daarom weet ons dit is waar. God self het ook beklemtoon dat dit waar is deur wonderlike dinge en allerhande tekens daarmee saam te laat gebeur. Hy het ook deur die Heilige Gees aan die gelowiges baie spesiale geestelike geskenke gegee soos Hy gevoel het Hy wil doen. Jesus wat ons red, gee vir ons ’n nuwe bestaan in ’n nuwe wêreld. Dit is waaroor ons praat. God het egter nie die hemelse wesens baas oor die nuwe wêreld gemaak nie. Iewers in die Skrif vra iemand vir God: “Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg? En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het. U het alles vir hom gegee om oor te regeer.” As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering. Soos dit op die oomblik lyk, regeer die mens nog nie oor alles nie. Daar is egter een uitsondering en dit is Jesus. Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak. Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is. Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee. God het alles gemaak en alles wat bestaan, bestaan net vir Hom. Hy wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Daarom is daar niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red. Dit is Jesus wat sorg dat mense na God toe mag gaan, en die mense wat deur Jesus vir God aanvaarbaar gemaak word, behoort aan dieselfde gesin. Daarom is Jesus nie skaam om hulle sy broers en susters te noem en hulle so te behandel nie. Hy sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.” Dit het Hy ook nog oor die familie gesê: “Ook Ek vertrou God altyd,” en: “Kyk, hier is Ek en al die kinders wat God My gegee het.” Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het. Op dié manier kon Hy ook doodgaan om so die duiwel op sy plek te sit. Dit is mos juis die duiwel wat mense doodmaak. So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het. Ons weet goed dat Hy nie al die moeite gedoen het om die hemelse wesens te kom help nie. Hy het dit gedoen om mense te kom help. Daarom was dit nodig dat Jesus in elke opsig ’n mens moes word, net soos ons, sy broers en susters. So kan Hy regtig namens mense die diens aan God bewys wat God verwag. Hy kan die hoëpriester wees wat simpatie met mense het en wat mense se belange op sy hart dra. So kan Hy daarvoor sorg dat mense se sondes vergewe word en nie teen hulle gehou sal word nie. Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help. My broers en susters, God het julle geroep om net Syne te wees. Laat Jesus daarom die fokus van julle lewe wees. Konsentreer op wat Hy wil hê, want ons almal stem saam dat God Hom gestuur het en dat Hy as Hoëpriester ons saak by God moet gaan stel. Dit vertel ons ook vir ander mense. God het Jesus aangestel en Jesus het alles gedoen soos God dit van Hom verwag het, net soos Moses destyds getrou gedoen het wat God wou hê. In vergelyking met Moses is Jesus egter baie belangriker. Om ’n voorbeeld te gebruik: die bouer is tog baie belangriker as dit wat hy bou. Laat ek die beeld verder neem. Elke huis moet deur iemand gebou word, maar dit is God wat almal en alles bou. Moses was soos ’n getroue werker in God se huis. Hy het mense ook vertel van al die dinge wat God nog in die toekoms sou sê. Christus is egter nie soos ’n werker nie, maar soos die seun lojaal in die huis van God. Ons is die huis van God wanneer ons vasberade tot die einde toe met oortuiging bly vashou aan alles wat God beloof het. Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie. Julle voorvaders het presies dit in die woestyn gedoen - hulle het teen My gedraai en gekyk hoe ver hulle met My kan gaan voor Ek my geduld verloor. Julle moet beslis nie hulle voorbeeld volg nie. In die woestyn het Ek 40 jaar lank vir hulle so baie gedoen en hulle het dit geweet; nogtans het hulle my geduld tot die uiterste op die proef gestel. Uiteindelik het my geduld opgeraak en Ek het gesê: ‘Hulle wil nie regtig by My wees nie, maar is heeltyd op soek na iets anders, hulle stel nie regtig belang om te gaan waar Ek gaan nie.’ Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Wees daarom wakker, my broers en susters. Maak seker dat daar nie iemand onder julle is wat so in die sonde baljaar dat hy die pad na die lewende God byster raak omdat hy God nie meer vertrou nie. Praat mekaar elke dag moed in terwyl God nog vir ons die kans gee om dit te doen. Help mekaar dat nie een van julle deur die lekker van die sonde so betower word dat julle God nie meer raaksien nie. Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit vasberade op God bly vertrou soos ons dit aan die begin gedoen het. Luister weer ’n keer wat gesê is: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer soos julle gemaak het toe julle teen Hom gedraai het nie.” Wie was hierdie mense met wie God gepraat en wat so teen God gedraai het? Was dit nie die einste mense vir wie Moses uit Egipte laat trek het nie? En met wie het God se geduld in die 40 jaar opgeraak? Was dit nie die mense wat nie wou doen wat God vra nie? Hulle is toe mos net daar in die woestyn dood. Vir wie het God gesê dat hulle vir seker nooit sal ervaar wat dit beteken om vir ewig saam met Hom te rus nie? Ja-nee, dit was niemand anders nie as die mense wat nie na Hom wou luister nie. Dit is geen geheim waarom hulle nie vir ewig saam met God sal rus nie: hulle het God nie vertrou nie. God het beloof dat sy mense eendag vir ewig saam met Hom sal rus. Dit geld ook vir ons. Ons moet seker maak dat julle almal dit uiteindelik sal haal. Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.” Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie. Maar God het die mense nog ’n kans gegee. Daarom het Hy nog ’n dag, wat Hy “vandag” noem, gegee. Hy het lank daarna weer deur Dawid daaroor gepraat: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer nie.” Hierdie rus wat God aan mense beloof het, is nie die rus wat Josua vir die Israeliete gegee het toe hy hulle in Kanaän ingelei het nie. Dan sou God mos nie jare later deur Dawid weer van ’n ander dag (die “vandag”) gepraat het nie. Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het. Iemand wat vir ewig saam met God sal rus, sal net soos God rus nadat Hy alles gemaak het. Ons moet nie die voorbeeld van die ou Israeliete volg en by God in die moeilikheid beland soos hulle nie. Hulle wou mos nie na God luister nie. Ons moet egter ons uiterste bes probeer om seker te maak dat ons vir ewig saam met God sal gaan rus. Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie. God weet alles wat in die wêreld aangaan. Net mooi niks kan vir Hom weggesteek word nie. Hy sien en weet alles asof dit voor Hom op ’n tafel uitgepak is. So sal ons ook voor Hom moet staan en antwoorde gee oor wat in ons lewe aangaan. Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons het baie goeie rede om dit te doen: Jesus, die Seun van God, is ons groot Hoëpriester wat tot by God self gegaan het. Hy sal ons saak by God behartig. Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons, met dié verskil dat Hy nie een maal ’n fout gemaak het nie. Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou. Laat ons oor hoëpriesters nadink. ’n Hoëpriester word uit mense gekies en aangestel om ander mense se sake by God te behartig. Dit gaan oor godsdienstige dinge wat God raak: die hoëpriester moet allerhande offers vir God gee sodat God nie die mense straf vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Omdat die hoëpriester self ’n swak mens is, sal hy simpatie hê met mense wat verkeerde dinge doen of wat nie weet wat reg is nie. Daarom moet hy eers vir al die verkeerde dinge wat hy self gedoen het met ’n offer vir God om verskoning vra voordat hy dieselfde vir die ander mense kan doen. Iemand kan nie self besluit dat hy ’n hoëpriester wil wees nie. Nee, God roep ’n mens om daardie werk te doen, soos Hy Aäron geroep het. Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,” of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.” Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan. Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister. God het Hom dan ook aangestel as ’n Hoëpriester, net soos Melgisedek ’n hoëpriester was. Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ’n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie. En iemand wat dit doen, is nog ’n babatjie in die geloof. Hy weet nog nie eens mooi wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie. Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is. Laat ons nou nie in die wegspringblokke bly sit deur vas te steek by die heel basiese dingetjies wat ons oor Christus geleer het nie. Kom ons praat ’n bietjie oor dinge wat vir grootmense in die geloof bedoel is. Ons het nou al genoeg gepraat oor hoe ons dinge moet laat staan wat op die geestelike dood uitloop, of dat ons maar net op God moet vertrou. Ek gaan ook nie weer die doop of die handoplegging bespreek nie en nie weer ’n keer vir julle vertel dat ons uit die dood lewendig gaan word of dat God die ongelowige mense gaan straf nie. Laat ons ’n bietjie oor dieper dinge praat, as God wil. Een ding sal nie gebeur nie: sê nou daar is mense wat saam met julle in die kerk gesit en oor wie die lig van God reeds geskyn het. Hulle het al ’n voorsmaak gekry van die hemel en van wat vir hulle wag, hulle was deel van die werk van die Heilige Gees en hulle ken God se wonderlike boodskap. Hulle het ook al stukkies van die krag ervaar wat met die wederkoms voluit gaan losbreek. En sê nou hulle wil ten spyte van dit alles niks meer met God te doen hê nie en hulle los die kerk? Wel, dit is nie moontlik om hulle weer ’n keer na God toe terug te lei nie. Dit is so goed of hulle in hulleself die Seun van God van voor af gekruisig en Hom voor almal belaglik gemaak het. Laat ek dit vir julle met ’n voorbeeld verduidelik. Sê nou daar is twee stukke grond en op albei stukke grond val daar genoeg reën. Die een stuk grond lewer die pragtigste oes op en die boer is trots daarop. Van so ’n stuk grond hou God en God sal na so ’n stuk grond kyk. Maar die ander stuk grond is net vol nuttelose goed soos dorings en bossies. Dit is hopeloos en niks werd nie. God kan enige oomblik besluit om niks meer met daardie grond te doen te hê nie en om dit aan die brand te steek. My liewe vriende, ek klink miskien kwaai. Nogtans is ek seker dat dit nie so sleg gaan met julle nie. Ek weet julle is God s’n en leef ook soos mense wat gered is. God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan. Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het. Moenie lui word om God te dien nie. Doen wat die Christene voor julle gedoen het. Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het. God het Abraham iets beloof. Om vir Abraham te wys hoe ernstig Hy is, het Hy ’n eed afgelê. Om ’n eed te neem moet iemand die gesag van iets groters as hyself inroep. Vir God is daar egter nie iets wat groter is as Hy nie. Daarom het God Homself ingeroep en vir Abraham gesê: “Ek sal baie goed vir jou wees en vir jou ’n groot nageslag gee.” Abraham het geduldig gewag tot God gedoen het wat Hy beloof het. Soos ek gesê het, as iemand ’n eed neem, roep hy die gesag in van iets of iemand wat groter is as hy. Dan twyfel niemand meer dat die persoon ernstig is oor wat hy sê nie. Daarom het God ook ’n eed geneem. Hy wou doodseker maak dat nie Abraham of sy nageslag sou twyfel dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie. Daar is nou twee dinge wat soos ’n paal bo water staan en nooit verander sal kan word nie: daar is die belofte van God en die eed wat Hy geneem het. En God kan nie lieg nie. Ons wat na God toe is om gered te word kan daarom vir seker weet dat God sy beloftes sal hou. Om God so te vertrou is soos ’n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God self in die heiligste van heilige plekke. Jesus, wat die pad na God vir ons oopmaak, is klaar daar ter wille van ons. Hy is mos ons Hoëpriester op dieselfde manier as wat Melgisedek ’n priester was. Jesus is ’n priester soos Melgisedek. Wat beteken dit? Melgisedek was sowel die koning van Salem (wat later Jerusalem geword het) as ’n priester van die allergrootste God. Abraham was op ’n keer op pad terug van ’n oorlog af; dit was toe hy die klomp konings verslaan het. Op pad loop hy toe vir Melgisedek raak. Melgisedek seën toe vir Abraham en in ruil gee Abraham vir hom ’n tiende van die goed wat hy in die oorlog afgevat het. Om mee te begin: die naam Melgisedek beteken “koning wat doen wat reg is”. Verder beteken “koning van Salem” eintlik “koning wat vrede maak”. Waar hy vandaan gekom en wie sy pa en ma was, is ’n geheim. Niemand weet wanneer hy gebore is of wanneer hy dood is nie. Hy is net soos die Seun van God. Hy is ook ’n priester vir altyd. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het. Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het. Daar is nog ’n ander vraag: Waarom moes daar nog ’n ander soort priester kom? Aäron, as Leviet, en sy nakomelinge was mos daar: Waarom is priesters soos Melgisedek ook nog nodig? Immers, die wet en alles is gegee met die Leviete wat dit organiseer. Wel, die Levitiese priesters met die wet en al kon nie doen wat hulle moes doen nie. Daarom was ’n priester wat soos Melgisedek is, ook nodig. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander. [13-14] Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie. *** Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie. Want die Skrif sê self: “U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.” Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God. En nog ’n ander ding: God het Jesus met ’n eed priester gemaak. Nie een van die ander priesters kan dit sê nie. Toe God Jesus as priester aangestel het, het Hy gesê: “Met ’n eed het die Here sy woord gegee en sal dit nooit terugtrek of breek nie: ‘Jy is die priester vir ewig en altyd.’” Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is. In die verlede was daar rye priesters, want soos hulle dood is, moes daar nuwe priesters aangestel word. Met Jesus is dit glad nie so nie. Hy leef vir ewig en daarom sal Hy vir altyd priester bly. Ons hoef dus nie ’n ander priester te soek nie. Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd. Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense. Maar dit is nie vir Jesus nodig nie. Hy het een offer gebring en toe het God gesê dit is genoeg. Daar is nie meer offers nodig nie. En daardie offer was toe Hy Homself geoffer het. Laat ek dit ’n bietjie saamvat: die hoëpriesters van ouds was maar swak mense. Nou, na die wet, het God met ’n eed sy Seun Hoëpriester gemaak. Hy is volmaak en sal sorg dat alles gedoen word wat nodig is. Dit sal vir altyd so wees. Wat ek wil sê, is dit: ons het die wonderlikste Hoëpriester denkbaar. Hy sit op die ereplek langs die magtige God self. In die heilige plek waar God is, is Jesus besig om as Hoëpriester vir ons te doen wat vir ons nodig is om ook by God te wees. Dis nie mense wat God se heilige blyplek gebou het nie, maar God self het dit gedoen. Die eintlike werk wat ’n hoëpriester moet doen, is om namens mense vir God geskenke en offers te gee. Jesus moes daarom ook iets hê om te offer. As Hy maar net ’n gewone mens op aarde was, sou Hy nie eens ’n priester kon wees nie, want daar was al priesters. Die wet sê mos presies wie op aarde ’n priester mag wees en wie nie. Hierdie priesters werk egter in ’n heilige plek op aarde wat in vergelyking met die hemelse heilige plek maar net soos ’n skaduwee is. Die aardse een is maar soos ’n tekening van die werklike een in die hemel. Toe Moses die heilige plek vir die Israeliete in die woestyn reggemaak het, het God dit mos duidelik vir hom gesê: “Maak doodseker dat jy alles presies so maak soos Ek dit vir jou op die berg gewys het toe jy by My was.” Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dít wat God beloof het soveel beter is. As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was. Luister wat het Hy gesê: “Die tyd sal kom wanneer Ek ’n nuwe ooreenkoms met die mense van Israel en Juda sal maak. Dit sal heeltemal anders wees as die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslagte gemaak het. Ek praat van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het toe Ek hulle veilig uit Egipte uitgelei het. Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai.” Dit het die Here gesê. Maar die Here het verder gegaan: “Ek sal in die toekoms ’n nuwe ooreenkoms met my mense maak. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak. Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees. Dit sal nie meer vir hulle nodig wees om onder mekaar te sê nie: ‘Jy moet meer erns maak om die Here te leer ken.’ Hulle almal sal My persoonlik ken, klein en groot. Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie.” As God so praat oor die nuwe ooreenkoms, beteken dit mos dat die ou ooreenkoms verby is. As dit verby is, hoef ’n mens jou mos nie meer daaraan te steur nie. Net ’n rukkie, dan dink mense nie meer daaraan nie. Met die eerste ooreenkoms was daar ’n heilige plek op aarde en ook baie reëls oor hoe ’n mens God moes aanbid. ’n Spesiale plek met twee kamers is reggemaak. Die eerste kamer is die “Heilige deel” genoem. Daar het hulle ’n lamp en die tafel met die heilige brood gesit. Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem. In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was. Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie. Nou weet ons ten minste hoe die Heilige plek gelyk het. Die priesters het gereeld in die eerste kamer (die Heilige deel) ingegaan. Daar het hulle alles gedoen wat hulle moes. Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie. Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was. Ons kan nogal baie hieruit leer: mense het wel allerhande geskenke en offers na die Heilige plek toe gebring, maar hulle kon nie heeltemal seker wees dat hulle saak met God dan honderd persent reg was nie. Hulle was vreeslik ernstig oor wat hulle mag eet en drink en wat nie en het allerhande dinge gedoen om hulle darem aanvaarbaar vir God te probeer hou. Hierdie soort dinge raak nie regtig die hart van die godsdiens nie en daarom, vandat Christus alles nuut kom maak het, is hierdie dinge ook nie meer nodig nie. Christus het gekom as Hoëpriester van die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense. Dit was baie goed. Hy het nie net in ’n plek ingegaan wat maar hier op aarde deur mense gemaak is nie. Hy het deur die Heiligste plek in die hemel ingegaan. Dit is ’n baie beter en volmaakter plek as die een op aarde. Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees. Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het. Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak. Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien. Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms. [16-17] Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament. *** Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop. Julle onthou mos dat Moses eers elke reël wat in die wet gemaak is, vir die volk voorgelees het. Toe vat hy wol wat rooi gekleur is en takkies van ’n hisopplant en sprinkel daarmee die bloed van kalwers en bokke saam met water oor die boek waarin die reëls staan en oor al die mense. Hy sê toe: “God het met julle ’n ooreenkoms gemaak en julle moet daarby bly. Dié bloed is die bewys van die ooreenkoms.” Toe het Moses die bloed gaan sprinkel op die Heilige plek en alles wat daarin vir die diens van God gebruik is. Die wet bepaal tog dat omtrent alles so met bloed besprinkel moes word om aanvaarbaar te wees vir God. God vergewe nie sondes as daar nie bloed geloop het nie. Die aardse Heilige plek en alles daarin is maar soos ’n skaduwee van die hemelse Heilige plek. As die aardse plek so met bloed vir God aanvaarbaar gemaak is, was daar vir die hemelse Heilige plek ’n baie beter offer nodig. Christus is nie sommer in ’n heilige plek in wat deur mense gemaak is en net soos ’n skaduwee van die regte een is nie. Nee, Hy is in die hemel self na God toe om ons saak daar by God namens ons te gaan stel. Die hoëpriester op aarde moes ook natuurlik elke jaar in die Heiligste deel ingaan met die bloed van diere. Christus is egter nie weer en weer in die hemel in om Homself elke keer van voor af te offer nie. Dan moes Hy mos van die begin af oor en oor gely het. Nee, Christus het maar een maal gekom toe die tyd daarvoor ryp was. Toe het Hy Homself vir God geoffer en so klaargespeel met al ons sondes. Net soos ’n mens maar een maal sterf en dan voor God moet gaan staan om sy oordeel aan te hoor, so het Jesus net een maal gesterf. Sy sterwe was soos ’n offer waarmee Hy gesorg het dat God al die verkeerde dinge oorsien wat baie mense gedoen het. Christus sal weer kom, maar hierdie keer nie om vir al die verkeerde dinge wat ons doen te kom boet nie. Hy sal dan kom om almal wat vir Hom wag na God toe te neem. Die ou wet het ons maar net ’n vae idee gegee van al die wonderlike dinge wat God nog vir ons sou doen. Dit was soos ’n skaduwee wat ’n mens waarsku dat die regte persoon op pad is. Dag na dag, jaar na jaar, het mense dieselfde offers gebring, maar dit kon nie hulle saak met God heeltemal regmaak nie. Dink net daaraan, as die offers regtig gehelp het, sou hulle mos daarmee opgehou het. Dan sou hulle saak met God mos reg gewees het en sou hulle sondes hulle nie langer gepla het nie. Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie. Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het: “Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het. Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’” Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.) Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword. Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees: “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.” En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.” As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie. My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het. Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak. Christus is die groot priester wat in beheer is in God se huis. Juis daarom kan ons opreg in God se huis ingaan sonder om te twyfel oor dit waarop ons vertrou. Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas. God breek nooit sy woord nie; op Hom kan ons reken. Daarom kan ons sonder enige twyfel vashou aan die beloftes wat God aan ons gemaak het. Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees. Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie. As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.” Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie. Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God: “Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.” Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef. Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang. Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand. Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier. Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees. As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak. [17-18] God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak. *** Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het. Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof. Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat. Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak. Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie. Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem. Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar. Dit was vir hom baie beter dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê. Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys. Hy het vir die Israeliete gesê om die paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie. Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink. Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie. Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig. Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder. Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God. Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is. Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip. Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was. Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie. God het ’n ander, baie beter plan met ons almal. Hulle sal nie alleen nie, maar saam met ons alles volledig kry wat God vir ons almal wil en sal gee. Die lewe is soos ’n wedloop. Op die pawiljoen het ons ’n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie. Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie. Boonop lyk dit of julle vergeet het hoe God sy kinders moed inpraat: “My kind, moenie dit sommer van jou afskud as die Here jou straf nie. Moenie sommer tou opgooi as Hy jou op jou foute wys nie. As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Daarom tree Hy soms ook hard op teenoor sy kinders.” Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee. Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie? As God julle glad nie reghelp as julle verkeerd doen deur dinge met julle te laat gebeur wat nie baie lekker is nie, moet julle weet dat julle nie regtig sy kinders is nie. Alle kinders word soms gestraf. Ons almal het ’n aardse pa gehad wat ons soms gestraf het. Dit het ons respek vir hom gegee. Hoeveel te meer moet ons nie na ons geestelike Vader luister nie? Dan sal ons regtig leef. Ons aardse pa het ons ’n klompie jare grootgemaak so goed hy kon. Soms moes hy ons ook straf. Maar met God is daar soveel meer op die spel. Hy moet ons reghelp vir ons eie beswil, sodat ons uiteindelik net soos Hy heilig kan wees. Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ’n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef. Julle moet nie soos ’n klomp geestelike swakkelinge leef nie. Wees entoesiasties oor wat julle as Christene doen. Loop julle lewenspad met soveel oortuiging dat die mense wat agter julle aankom en maar ’n bietjie sukkel, hulle gesukkel sal afgooi en met net soveel oortuiging as julle hulle lewenspad verder sal loop. Probeer julle bes om nie met ander mense te stry of te baklei nie. Leef so dat God trots kan wees op julle, want as iemand nie so leef nie, sal hy sowaar nie by die Here uitkom nie. Help mekaar sodat nie een van julle dalk al die goeie dinge misloop wat God so vrylik vir ons gee nie. As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word. As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat uiteindelik baie mense seermaak. Sorg dat niemand seksueel verkeerde dinge doen of hulle rug vir God draai soos Esau gedoen het nie. Hy het mos sy reg as oudste seun en erfgenaam sommer vir ’n bord sop verruil. Julle onthou ook mos wat toe gebeur het. Later wou hy sy reg as oudste seun terughê en hy het verwag dat sy pa vir die Here moes vra om dit te doen. Maar die Here wou nie. Al het hy lang trane gehuil, kon hy niks aan die situasie verander nie. Julle het ook nog nie soos Israel by ’n regte berg soos Sinai gekom nie. Daar was ’n geweldige vuur op die berg, terwyl donker wolke oor die berg gehang het. Dit was donker en daar het ’n woeste storm losgebreek. Die mense het ’n trompet hoor blaas en ’n geweldige stem gehoor. Hulle was so verskrik dat hulle begin smeek het dat die stem tog asseblief moes ophou. Dit was God wat met hulle gepraat het. Wat God vir hulle gesê het, was ondraaglik: “Selfs as ’n dier net aan die berg raak, moet dit doodgegooi word met klippe.” Alles wat daar by die berg gebeur het, was so skrikwekkend dat selfs Moses geskree het: “Ek staan en ruk, so bang is ek.” Maar kyk net by watter berg het julle uitgekom. Julle het gekom by die berg Sion waar die woonplek van die lewende God is, die hemelse Jerusalem. Daar is duisende der duisende hemelwesens wat vrolik bymekaar is en saamsing. Julle het gekom by die kerk van almal vir wie God ’n nuwe lewe gegee het en wie se name in die hemel opgeskryf is. Daar kry julle ook vir God wat uiteindelik as Regter sal besluit wat die lot van elke mens sal wees. By Hom is ook die geeste van mense wat reeds gered en volmaak by Hom is. Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel. Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan. Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.” Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees. God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is. Daar staan nie verniet geskryf nie: “God is soos ’n vuur wat alles tot as kan verbrand.” Julle moet in liefde lojaal bly teenoor mekaar soos broers dit doen. Wees gasvry, want dit het al gebeur dat mense hemelse wesens vriendelik ontvang het sonder om eens agter te kom wat hulle regtig was. Moenie die mense wat in die tronk is, vergeet nie. Dit moet vir julle wees asof julle self in die tronk is. Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur. Mense wat getroud is, moet die huweliksband respekteer en mag nie rondslaap nie. God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen. Wees tevrede met wat julle het en moenie heeltyd agter geld aanhardloop asof dit die belangrikste ding in julle lewe is nie. God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?” Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het. Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos Hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees. Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie. Ons het mos ’n nuwe altaar. Die priesters van die ou ooreenkoms het nie die voorreg om saam met ons rondom die nuwe altaar fees te vier nie. Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is. So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak. Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy. Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is. Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort. Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak. Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees. Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie. God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan. Hierdie Jesus is ook die groot Herder wat na sy skape kyk. Mag hierdie God van vrede julle alles gee wat julle nodig het sodat julle kan doen wat Hy van julle verwag. Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees. Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen. My liewe vriende, ek vra julle baie mooi: neem tog asseblief die brief ernstig op, want dit is nie ’n lang brief nie. Ek het dit spesiaal geskryf om julle moed in te praat. Julle het seker ook al gehoor dat ons geestelike broer Timoteus uit die tronk is. As hy nie te lank draai om hier by my uit te kom nie, sal ek saam met hom na julle toe kom. Groete aan al die leiers en al die ander Christene. Die Christene wat van Italië af kom en hier by my is, stuur ook vir julle groete. Mag God goed wees vir julle, meer as wat julle ooit verdien. Van Jakobus. Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien met alles wat hy het. Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort, moet die brief lees. Dit is vir julle bedoel. My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree. As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee. Maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg. [7-8] Dit is ’n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit? *** God werk anders as ons met mense. Vir Hom is daardie arm man of vrou wat in nederige omstandighede bly, baie belangrik. Vir julle met wie dit so gaan, moet dit baie moed gee. Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig. Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan? Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het. Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie. [14-15] Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood. *** Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel. Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af. Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur. Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie. Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Wees liewer gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken. Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring. Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul. Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek. Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet. Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen. Christene, niemand is of kan so belangrik wees soos ons Here Jesus Christus nie. Moenie nou sê julle is hierdie Here s’n en dan omdraai en gaan kruip voor mense met baie geld of status nie. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Veronderstel twee mans kom by julle aan terwyl julle kerk hou. Die een man het geld soos bossies. Dit kan jy sommer aan sy klere sien. Hy is ook een van die belangrikste mense in die dorp. Die ander man is egter arm. Sy klere is oud en stukkend. Niemand in die dorp steur hulle aan hom nie. Nou kom die twee saam daar by julle aan. Vir die ryk, belangrike man sê julle: “Kom sit hier op die beste en lekkerste plek.” Vir die arm, onbelangrike man sê julle: “Sit sommer hier op die grond of kry maar vir jou ’n ander plekkie.” Wat dink julle het julle dan gedoen? Het julle dan nie eintlik gesê dat party mense (oor wat hulle besit of wie hulle is) belangriker as ander is nie? Dis tog verkeerd! As julle party beter as ander behandel omdat hulle vir julle ryker of belangriker lyk, tree julle nie soos Jesus op nie. Dan doen julle presies wat ’n klomp slegte mense sou doen. Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie? Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie? As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker. Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap. Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie. Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie. Luister na die volgende storie en dan sal julle verstaan wat ek bedoel. Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie. Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie. So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is. Iemand sou kon sê: “Jy het ’n geloofsverhouding met God, maar ek doen weer wat God vra.” Maar sê dit presies dieselfde? Dink daaroor na. Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan. Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie - die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef. Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie. Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook. By hom kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees. Die Bybel sê mos: “Abraham het in God geglo. Juis daarom het God besluit dat Abraham se verhouding met Hom reg is.” Die bewys daarvan was toe Abraham vir Isak gaan offer het. Hy is van toe af ’n vriend van God genoem. Julle sien dus hoe belangrik dit is om te doen wat God vra. As dit om die regte verhouding met Hom gaan, is dit nie genoeg om slegs te weet dat God daar is en Hom te aanvaar nie. Dink nou maar aan Ragab. Sy was mos daardie straatvrou van Jerigo. Was dit nie juis haar optrede - toe sy die spioene van Israel versorg en in ’n veilige rigting weggestuur het - wat gewys het dat haar verhouding met die Here reg is nie? ’n Liggaam sonder lewe daarin is dood. Geloof, sonder dat die persoon ook die wil van die Here doen, is net so dood. My vriende, daar moenie te veel van julle wees wat die ander in die gemeente wil leer nie. Dit is ’n verantwoordelike werk. God stel strenger eise aan sulke mense. Wanneer Hy ons finaal oordeel, sal Hy dié wat ander geleer het volgens daardie strenger eise beoordeel. Ons almal maak foute en sê verkeerde dinge. As iemand nooit ’n skewe woord sê nie, is hy volmaak. Hy sal geen probleem hê om ook in ander dinge wat hy doen, reg op te tree nie. Dit werk soos die stuurwiel waarmee ek ’n hele kar beheer. As ek die stuurwiel draai, draai die hele kar. Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein. Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie. Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom aansteek wat jou hele lewe kan vernietig. Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie. Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik. Hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong baie mooi dinge van ons Here en Vader sê, maar omdraai en dan iemand so slegsê dat die see hom nie kan afwas nie? Is daardie persoon nie ook deur God gemaak nie? Moet ons hom nie ook met respek behandel nie? Dink net, uit dieselfde mond, met dieselfde tong, kom daar die een oomblik mooi woorde en die volgende oomblik ’n gevloek. My liewe vriende, dit behoort tog nie so te wees nie. Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop? Vriende, het julle al na ’n perskeboom geloop om te gaan druiwe pluk, of na ’n vyeboom om perskes te soek? Net so min kan daar vuil en skoon water tegelyk uit ’n kraan loop. Dit geld vir die tong ook. Wie van julle het die lewenswysheid om te verstaan hoe ’n mens die spel van die lewe sinvol en reg moet speel? Laat hy dit wys deur die manier waarop hy hom gedra. Nederig en op sy plek moet hy doen wat God wil hê ’n mens moet doen om sinvol te leef. As die een onder julle egter vir die ander een niks gun nie en altyd beter wil wees as die ander een, moet julle nie maak of julle weet wat ’n sinvolle lewe is nie. Julle jaloesie onder mekaar wys dan dat julle lieg. “Lewenswysheid” wat die taal van jaloesie en selfsug praat en mense gedurig wil hap of seermaak, kom nie van God af nie. Nee, dit kom van die duiwel af. Iemand wat optree volgens die maatstawwe wat mense stel, dink dit is hoe ’n mens behoort te leef. Dit is egter nie wat God dink nie. Want waar daar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie. Hulle is gedurig aanmekaar. Dit pla hulle ook nie om sommer die lelikste goed aan mekaar te doen nie. Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug. Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God. Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is. Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry. Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie. So draai julle die rug vir God en vry na die sonde. Besef julle nie dat om gedurig die verkeerde dinge te doen wat so eie aan ons as mense is, beteken om teen God te draai en sy vyand te word nie? Julle het ’n keuse. Julle kan kies om soos die mense te leef wat God nie ken nie, maar dan kies julle ook om God se vyand te word. Dink julle miskien die Skrif is sommer vir spek en boontjies geskryf? Natuurlik nie. Luister dan na wat daar staan: God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê. God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien. Ek verwys weer na wat die Skrif sê: “God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed - meer as wat hulle ooit verdien.” Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan. Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan. Liewe broers en susters, moenie lelik praat van mekaar nie. Iemand wat oor sy mede-Christen skinder of sê hy is sleg, maak eintlik God se wil sleg en praat teen die wet van God. As jy sê God se wil is sleg, doen jy mos nie wat God wil hê nie. Dan hou jy jou belangriker as sy wet. Daar is net een Persoon wat belangriker is as die wet en dit is die Een wat die wet gemaak het. Hy alleen kan besluit wie vrygespreek word en wie veroordeel word. Wie is jy nou miskien om te maak of jy kan oordeel of iets kan sê oor jou medemens? Kom nou; luister ’n bietjie na julleself. Julle sê: “Ons gaan sommer nou of miskien môre na daardie stad toe. Daar gaan ons ’n jaar bly. Ons gaan lekker besigheid doen en sakke vol geld maak.” Sê my, weet jy presies wat môre gaan gebeur? Kan jy dit regtig sê? Dink maar aan die lewe. Dit is so onseker en kortstondig. Dit is soos weerlig wat slaan. Die een oomblik is dit helder daar, maar die volgende oomblik is dit weg. Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.” Julle praat egter so groot asof alles net van julle alleen afhang. Dit is verkeerd, hoor! Die Here hou nie daarvan nie. As julle dan weet wat reg is om te doen en julle steur julle nie daaraan nie, leef julle nie soos die Here dit wil hê nie. Staan ’n bietjie nader en luister hierna, julle wat dink geld maak julle so belangrik. Vreeslike dinge wat julle baie seer gaan maak, wag vir julle. Dan sal julle net met julle kop in julle hande kan sit en huil. Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde. Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby. Onthou julle die werksmense wat op julle lande gewerk het? Onthou julle hoe julle hulle nie gegee het wat hulle eintlik verdien het nie? En hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle was magteloos. Sulke dinge kan ’n mens nie stil hou nie. Dit is of dié geld wat julle vir julleself gehou het, self aan die skree gaan omdat julle so oneerlik is. Die Here, wat sterker as almal is, hoor duidelik hoe daardie werkers magteloos kla. Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer. Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer. Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen. Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe. Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom. Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou. Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is. Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie. Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is. Is een van julle siek? Hy moet die leiers in die gemeente roep om vir hom te bid. Hulle moet olie op hom sit as bewys van die teenwoordigheid en krag van God. As ’n mens God so vra en Hom vertrou, sal die Here dié persoon help. Hy sal hom nie alleen gesond maak nie, maar as hy dinge gedoen het waarvan God nie hou nie, sal God hom ook oorsien. Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is. Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly. Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was. Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie. As hy hom nie gehelp het nie, sou daardie persoon totaal van God af weggedwaal en sonder God gesterf het. Hy sal daardie persoon help om weg te draai van al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, asof dit nooit deel van sy lewe was nie. Petrus, wat spesiaal deur Jesus Christus gestuur is, het hierdie brief geskryf. Ek skryf aan die mense wat God vir Hom gekies het en wie se lewe nie net om die dinge van hierdie wêreld draai nie. Ek praat van die gelowiges wat verjaag is en nou versprei in die hele Turkye bly. God, hulle Vader, weet al lankal dat hulle Syne is, want die Heilige Gees het hulle Syne gemaak. Daarom luister hulle nou na Hom. Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is; daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee. Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig en veilig by Hom voel, sonder dat enigiets julle pla. God, die Vader van Jesus Christus, is darem groot en wonderlik. Hy self het ons sy kinders gemaak. ’n Mens staan verstom voor sy geweldige goedheid. God het ons beloof dat wat Syne is, ook ons s’n is. Met al die dinge wat Hy vir ons beloof het, kan niks skeefloop nie, want dit kan nie stukkend of verlore raak nie. God bêre dit vir ons daar by Hom. Daarom twyfel ons nie een oomblik dat God sy woord gaan hou nie. Ons weet dit gaan gebeur, al weet ons nie wanneer nie. God het mos bewys dat Hy al die dinge vir ons kan en wil doen toe Hy Jesus uit die dood opgewek het. God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees. Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie. Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word. As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly, sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat. [8-9] Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou. Dit is nie asof alles eers eendag daar ver gaan gebeur nie. Omdat ons op Jesus vertrou, kan ons sê dat ons saak nou reeds met God reg is. Dit is waarom ons in Jesus glo. Ek kan julle nie sê hoe bly dit ons maak nie. Ons loop behoorlik oor van dié wonderlike vreugde. *** Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg. Die Skrif sê: “Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.” Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het. Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie! God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer. Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen. Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie. Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak. Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar. Die Skrif sê nie verniet nie: “Elke mens is slegs soos ’n grashalmpie. Dit is met mense nie anders as met ’n blom in die veld nie. Die grashalmpie verdroog maklik en die blom se blaartjies val na ’n rukkie nutteloos op die grond. Dit is so tydelik. Maar die Woord van die Here sal altyd waar bly.” Hierdie “Woord” is die goeie boodskap oor Jesus wat julle gehoor het. Maak julle lewe skoon. Raak ontslae van slegte en oneerlike dinge. Moenie agter iemand se rug iets anders wees as wat julle voor hom is nie. Jaloesie bring julle niks in die sak nie, en om sleg te praat van ander nog minder. ’n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ’n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is. Julle het mos al ’n voorsmaak gehad van hoe goed die Here is. Kom na Jesus toe. Ek wil die voorbeeld gebruik van ’n huis wat gebou word. Jesus kan vergelyk word met ’n steen (behalwe dat Hy leef). Die mense wou Hom nie vir die bou van die huis gebruik nie. God het egter daardie Steen tussen al die ander uitgekies. God het geweet dat daardie Steen baie werd is en het Hom op die beste plek in die huis ingebou. Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.” As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif: “Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.” En: “Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.” Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering. Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur. Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie. Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle sonde voor God te betaal nie. Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef. Julle was soos skape wat verdwaal het, maar nou het julle julle pad terug gekry tot by julle Skaapwagter. Hy sal julle goed oppas en mooi vir julle sorg. Dieselfde geld ook vir vroue. Wees ’n goeie vrou vir jou man. Doen wat hy van jou verwag. Die manier waarop julle in die gesin leef, is belangrik. As daar byvoorbeeld ’n man is wat nie na die Woord van God wil luister nie, moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is. Ek vra julle: Wanneer is ’n vrou regtig mooi? Vir ’n Christen sit skoonheid nie aan die buitekant nie, maar dit kom van binne. Moenie julle te veel daaroor bekommer of julle klere in die mode is en julle hare pragtig versorg is nie. Mooi juweliersware is ook nie nodig om julle mooi te maak nie. Nee, ’n vrou se eintlike skoonheid kom van binne af. Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie! Of ’n vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af wegvat nie. In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra. In die ou tyd het die vroue wat God getrou met alles gedien het, hulle ook so mooi gemaak. Hulle was goeie vroue wat na hulle man geluister het. Dink aan Sara as voorbeeld. Sy het na Abraham geluister en erken dat hy die leiding in die gesin moes neem. As julle reg leef en nie toelaat dat mense julle bangmaak of verkleineer as julle vir God leef nie, behoort julle soos Sara ook aan God se geestelike gesin. Net so moet ’n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie. Onthou, sy kan haarself nie so goed beskerm en verdedig soos jy kan nie. Net soos vir jou, het God ook vir vroue die ewige lewe uit genade gegee. As jy so leef, sal jy baie rustig met God in gebed kan praat sonder dat jou gewete jou pla. Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie. As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het. Daar staan mos geskryf: “Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie. Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. “Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.” [12-13] As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. *** Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is. Dit sal die mense wat so lelik van julle praat omdat julle Christelik optree, belaglik maak, juis omdat hulle julle probeer swartsmeer. As God dit toelaat dat ongelowige mense julle sleg behandel, is dit darem baie beter dat hulle dit doen omdat julle goed en reg optree, soos Christene behoort op te tree, eerder as dat hulle julle so behandel omdat julle julle sleg gedra. Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het en leef. Weet julle wie is hierdie geeste? Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie. Uiteindelik, toe die reën begin uitsak, is daar net ’n handjie vol mense die skip in, agt in totaal. Hulle was toe die enigstes wat uit daardie groot vloed gered is. Hierdie dinge is eintlik vir ons ’n voorbeeld van wat op geestelike gebied by die doop gebeur. Daar skei die paaie van die mense wat gered word en dié wat nie gered word nie. Dit gaan nie oor vuilgoed wat die water van jou liggaam afwas nie. Dit gaan eerder oor dit wat binne-in jou gebeur. Dit gaan daaroor dat jy God opreg vra om alles weg te vat wat jou skuldig laat voel. Dit is moontlik omdat Jesus uit die graf opgestaan het en leef. Hy is na God toe en daar sit Hy op die ereplek direk langs God. Van daar heers Hy oor alles en almal. Selfs die onsigbare magte en die engele staan onder sy gesag. Jesus het as mens hier op aarde ook baie gely. As julle swaarkry, moet julle net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak. Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met die sonde op nie. Sy ingesteldheid in die lewe is anders. Hy hardloop nie die hele tyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir hom as mens lekker is nie. Nee, al wat ’n Christen graag die res van sy lewe wil doen, is dit wat God - en nie mense nie - gelukkig sal maak. Kyk net hoe ’n groot deel van julle lewe het julle reeds gemors deur julle op te hou met die dinge van die mense wat God nie ken nie. Ek praat nou van daardie tyd toe julle alle ordentlikheid en reëls oorboord gegooi en net gedoen het waarvoor julle lus was. Julle het julle papdronk gedrink en wilde sekspartytjies gehou. Wat ’n afskuwelike, afgodiese lewe is dit nie! Die mense wat so sonder God leef, vra waarom julle skielik nie meer die lelike dinge saam met hulle geniet nie. Hulle praat baie lelik van julle en sleep julle naam deur die modder. Maar moenie moedeloos word nie. Hierdie mense sal eendag voor God moet gaan staan. Hy sal besluit wat met hulle sal gebeur. Dit maak nie saak of iemand nog leef en of hy al dood is wanneer God kom oordeel nie, almal sal voor God moet staan. Dit is waarom die boodskap van Jesus se oorwinning ook gebring is aan die mense wat reeds dood is. Hulle het wel liggaamlik doodgegaan (wat eintlik ons almal se straf op die sonde is), maar hulle gees sal die lewe kry wat God vir hulle sal gee. Dit is nou nie meer lank voor die wêreld soos ons dit ken tot ’n einde gaan kom nie. Onthou dit elke oomblik en dink daaroor na. Sorg dat julle weet wat aangaan sodat julle sinvol met God kan praat in gebed. Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie. As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom. God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien. Byvoorbeeld, as een van julle preek, moet dit wees asof God deur hom praat. As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd. Daarvan kan julle seker wees. My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. As mense lelik met julle praat omdat julle Jesus s’n is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ’n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien. Dit is egter heeltemal ’n ander saak as julle in die moeilikheid kom omdat julle iemand doodgemaak of ’n ander se goed gesteel het, sommer afstootlik opgetree of net skoor gesoek het. As mense julle egter treiter omdat julle Christene is, hoef julle nie een oomblik skaam te voel nie. Sê eerder vir God dankie en maak sy Naam groot omdat julle Christene genoem mag word. Dit is nou die tyd vir God om soos ’n regter te sê wat Hy van elkeen dink. Hy gaan begin met die gelowiges wat sy kinders is. As selfs ons voor God moet gaan staan soos voor ’n regter in die hof, hoe vreesaanjaend en verskriklik sal dit nie vir dié mense wees wat hulle hele lewe lank die rug vir God en sy goeie boodskap gedraai het nie. As die mense wat volgens God se wil geleef het beswaarlik gered word, wat wag dan nie op die mense wat God misken en sleg geleef het nie? As ’n mens al dié dinge in gedagte hou, moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op die regte pad bly deur goed te doen. Vir die kerkleiers onder julle wil ek iets besonders sê. Ek self is ook ’n kerkleier wat vir ander van die lyding van Jesus vertel. Wanneer Jesus weer kom, sal ek ook die eer kry wat Hy aan gelowiges gaan gee. Ek weet dus waarvan ek praat. Pas die mense wat aan God behoort goed op, want julle moet as hulle leiers vir hulle sorg. Sorg mooi vir hulle. Dit moet nie vir julle ’n las wees asof iemand julle dwing nie. Nee, julle moet dit doen omdat julle dit graag wil doen en dit vir julle lekker is. Julle moenie vra wat julle daardeur gaan ontvang nie, maar liewer wat julle kan gee deur vir ander iets te beteken. God wil dit so hê. Moenie baasspelerig wees nie, maar lei die medegelowiges eerder deur die goeie voorbeeld wat julle stel. Wanneer Jesus, die Een wat so goed vir ons almal sorg, weer kom, sal Hy julle soos konings behandel. Hy sal julle die eer gee wat net konings kry en niemand sal dit van julle kan wegvat nie. Ek het ook iets besonders om vir die jonger mense te sê. Luister na die leiers in die gemeente. Julle moet mekaar help waar hulp nodig is sonder om te vra wat dit julle gaan kos. Moenie te veel van julleself dink nie, maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf: “God is nie aan die kant van mense wat te veel van hulleself dink nie; Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees.” Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee. Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg. In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg. Moenie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie. Laat dít vir julle ’n troos wees: daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene dieselfde dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as julle stry. Hierdie swaarkry as Christene sal nie meer so lank aanhou nie. Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy wat soveel goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Hy het Christus Jesus gestuur, deur wie God ons ook uitnooi om vir altyd sy eregaste te wees. Al ly julle nou ’n rukkie, sal God self vir julle julle ereplek by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle sal kan doen nie. Hy kan dit doen, want al die krag behoort aan Hom, nou en vir altyd. Daaraan hoef niemand eens te twyfel nie. Silvanus het my gehelp om hierdie kort briefie aan julle te skryf. Hy is ’n mede-Christen op wie ’n mens kan staatmaak. My doel met die brief is om julle moed in te praat deur julle weereens aan alles te herinner wat ons God vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en moet dit nooit los nie. Julle sustergemeente in Babilon (Rome) stuur groete, asook Markus, wat vir my soos ’n seun is. Vou mekaar toe in Christelike liefde. Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier diep in julle binneste gee, aan almal van julle wat Christene is. Van Simon Petrus. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus. Hy het my as een van sy apostels aangestel. God is baie goed. Daarom het Hy en ons Verlosser, Jesus Christus, dit so beskik dat julle glo. Omdat God vir julle baie goed is, glo julle nou, net soos ek. Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef. Die Here se hemelse krag het alles vir ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons ken God nou op ’n totaal nuwe manier. Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is, het ons elkeen geroep om in Hom te glo. Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee. Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking. Gee dadelik pad wanneer julle eie begeertes julle op sleeptou wil neem agter verkeerde dinge aan. Dan kry julle al hoe meer deel aan God se karakter. Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk:  Span julle in om altyd net die regte dinge te doen.  Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken.  Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie.  Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk!  Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen.  Saam met ’n lewe wat God verheerlik, gaan absolute lojaliteit teenoor ander gelowiges.  Saam met liefde vir ander gelowiges gaan liefde vir alle ander mense. Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry. As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit ’n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe. Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning. Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner. Ook al staan julle vas in die Here se waarheid, moet ek nog ’n slag vir julle sê hoe om tot eer van die Here te leef. Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is. Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys. Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef. Onthou julle nog hoe ons vroeër met julle gepraat het oor die krag van ons Here Jesus Christus en oor sy terugkeer na die aarde toe? Ons het glad nie vir julle gejok, of ’n klomp stories uit ons duim gesuig nie. Natuurlik nie. Ons het immers met ons eie oë gesien watter groot dinge Jesus Christus gedoen het toe Hy nog op aarde was. Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.” Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor. Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste. Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie, want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat. Ongelukkig was daar nog altyd ’n klomp vals profete in Israel. Binnekort gaan dieselfde daar by julle gebeur. ’n Klomp mense sal allerhande skewe sienings oor God daar by julle probeer insmokkel. Hulle sal ’n bespotting maak van die Here wat hulle losgekoop het. Ek sê vir julle: hulle oordeel is voor die deur, en baie gou ook! Hulle sal baie mense ompraat om allerhande afstootlike sondes saam met hulle te doen. Dit sal maak dat mense allerhande slegte dinge oor die Pad van die Waarheid begin kwytraak. Hierdie mense is ’n spul geldwolwe. Hulle sal die vroomste stories aan julle opdis net om julle geld in die hande te kry. Maar dit sal hulle nie help nie. God het al lankal besluit wat Hy met hulle gaan doen. Hulle ondergang staan vas. God laat nie met Hom speel nie. Onthou julle nog hoe Hy selfs ’n klompie engele wat teen Hom gesondig het, nie gespaar het nie. Hy het hulle in die hel gegooi. Daar word hulle nou in die pikdonker dieptes gevange gehou totdat die groot oordeelsdag aanbreek. God het ook nie die wêreld daar in die ou dae met hulle verkeerde dade laat wegkom nie. Hy het toe die hele sondige wêreld in water laat vergaan. Net Noag, die enigste persoon wat in daardie tyd vir mense gesê het om na God te luister, en sewe ander mense se lewens het Hy van vernietiging gered. God het Sodom en Gomorra ook veroordeel en met die aarde gelyk gemaak. Hulle dien as ’n voorbeeld van die soort oordeel wat God sal laat neerkom op almal wat sonder Hom leef. In daardie tyd het God net vir Lot gespaar. Hy het in die regte verhouding met God geleef te midde van al die seksuele losbandigheid van almal rondom hom wat hulle nie aan God gesteur het nie. Hierdie goeie man moes dag na dag vaskyk in die verskriklike sondes wat daar hoogty gevier het. Hy wat in die regte verhouding met God geleef het, moes sulke gruwelike dinge aanhoor dat dit hom byna van sy kop af moes laat raak het. Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie. Maar die Here weet ook hoe om slegte mense te straf en hoe om hulle gevange te hou tot op die groot oordeelsdag. Dit is veral daardie mense wat agter al hulle seksuele begeertes aanloop en hulle oorgee aan elke vorm van seksuele perversiteit wat moet lig loop. Hierdie mense wys dat hulle hulle nie aan die Here se gesag steur nie. Daarom gaan Hy hulle swaar straf. Hierdie vals leraars oor wie ek met julle praat, dink heeltemal te veel van hulleself. Hulle is arrogant. Dit pla hulle nie wanneer hulle die glorieryke hemelse wesens beledig nie. Nie eens een van die engele, wat baie sterker en belangriker as daardie mense is, sal so iets waag nie. Geen engel sal ooit beledigende dinge oor hierdie wesens sê voor die Here nie. Hierdie mense is soos ’n trop wilde diere wat gevang en vernietig moet word. Hulle sê beledigende dinge sonder dat hulle mooi weet waarmee hulle besig is. Maar hulle sal nie daarmee wegkom nie. Op die ou end sal hulle gevang word. En die beloning vir al die kwaad wat hulle hier op aarde aangevang het? Pyn en lyding, vir altyd! Hulle geniet dit om in die middel van die dag die een dronkpartytjie na die ander te hou. Kyk net wat vang hulle alles aan wanneer hulle saam met julle feesvier; hulle gee hulle dan oor aan allerhande uitspattighede. Hulle gaan heeltemal oorboord in hulle dwaalweë. Watter skaamtelose mense! Hulle kan hulle oë nie van ander mense se huweliksmaats afhou nie. Die een perversiteit na die ander is hulle kos. Ongelukkig verlei hulle ook ander mense wie se geloof nog nie so sterk is nie om al hierdie dinge saam met hulle te doen. Boonop is hulle geldgierig, die vervloekte spul! Hierdie spul het die reguit pad verlaat. Hulle is van koers af. Hulle doen presies wat Bileam, die seun van Beor, vroeër aangevang het. Hy is daardie vals profeet wie se liefde vir geld hom duur te staan gekom het. Maar die Bybel vertel vir ons dat Bileam se donkie net betyds met hom in ’n menslike stem gepraat het. Dit het gekeer dat die profeet met sy bose planne voortgaan. Die mense wat daar by julle optree, is soos fonteine wat opgedroog het. Hulle is soos miswolke wat deur ’n stormwind rondgewaai word. Daarom word daar in die donkerste plekke van die doderyk vir hulle ’n plek gereed gehou. Hulle is ongeskik en praat die grootste nonsens. Hulle verlei onskuldige mense om saam met hulle aan hulle afstootlike seksuele sondes deel te neem. Nuwe gelowiges wat maar pas van hulle sondige verlede afgesien het, is veral die prooi van dié mense. Hulle sleep die niksvermoedende gelowiges saam met hulle in die ellende in. Natuurlik beloof hulle hemel en aarde aan hierdie arme mense. Maar van die beloofde vryheid kom daar net mooi niks nie, want die mense wat hierdie leë beloftes maak, is self in die kloue van die dood vasgevang. Immers, as iets jou in sy mag beethet, is jy ’n slaaf daarvan. Wanneer mense uit die gemors van hierdie sondige wêreld gekom het nadat hulle ons Here en Redder, Jesus Christus, leer ken het, en hulle val daarna weer terug in al hulle sondes, is hulle uiteindelik slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir daardie mense beter gewees het dat hulle nooit op God se pad begin stap het nie as dat hulle daarop begin stap het en toe van Hom en sy voorskrifte af weggedwaal het. Daar is twee spreekwoorde wat hierdie mense baie goed beskryf: “Dit is net ’n hond wat so dom is om na sy eie braaksel terug te loop.” En: “Dit is net ’n vark wat so dom is om in die modder te gaan rol nadat hy skoon gewas is.” My liewe vriende, julle weet dat dit reeds die tweede brief is wat ek aan julle skryf. Net soos in die vorige brief wil ek hê dat julle nou ook baie mooi moet luister en reg dink. Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het. Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.” Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig. My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan. Julle weet dat al die dinge waarvan ek praat enige oomblik kan plaasvind. Daarom moet julle al hoe meer doen wat God vra. Gryp elke kans aan! Wys dat julle net aan Hom behoort. Sien uit na die dag waarop die Here terugkom. Leef so dat God die datum van sy terugkeer sal vervroeg. Leef daardie groot dag nader! Op daardie dag sal die hemelruim in vlamme verbrand en al die sterre en planete in ’n oomblik wegsmelt. Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig! My liewe broers en susters, omdat julle uitsien na alles wat in God se nuwe wêreld op julle wag, moet julle julle bes doen om so te leef dat julle God se hart altyd bly maak. Daar moenie eens ’n vuil kolletjie sonde in julle lewens te sien wees nie. Sorg dat julle eendag in vrede voor Hom kan staan, sonder enige skuldige gewetens. Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. Dit is presies wat Paulus, daardie broer van ons vir wie ons almal so lief is, ook vir julle geskryf het. In al sy briewe wat oor die wederkoms handel, skryf hy oor hierdie dinge. Nou ja, ek moet erken dat sommige van die dinge wat Paulus skryf moeilik is om te verstaan. Daarom dat daardie dwase wat nie begryp waaroor dit alles gaan nie, sy woorde so maklik verdraai. Maar dit is niks vreemds nie, want hulle verdraai die hele Bybel. Daarom wag daar groot moeilikheid op hulle. My liewe broers en susters, ek het julle nou behoorlik gewaarsku teen die mense wat die goeie nuus verdraai. Nou weet julle vooruit wat alles op julle wag. Pas op vir hulle! Moenie deur hulle sondes en skewe leringe meegesleur word nie. Staan sterk in julle geloof. Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie. Aan ons Here behoort al die heerlikheid, nou en vir altyd. Vir seker! Alles het by Hom begin. Voor alles was Hy al daar. Wat Jesus kom vertel het, het ons met ons eie ore by Hom gehoor. Ons het Hom met ons eie oë gesien. Ons het mooi dopgehou wat Hy gedoen het. Ons kon aan Hom vat en het ook inderdaad met ons hande aan Hom geraak. Wanneer ons dus oor Jesus praat, is ons seker waarvan ons praat. Maar wie is hierdie Jesus van wie ons praat? Dit gaan oor die Een wat ons kom vertel het waar om die ewige lewe te kry. Hy self het die ewige lewe. Daarom kan ons Hom “Lewe” noem. Die “Lewe” het na ons toe gekom. Ons het Hom goed dopgehou. Wat ons gesien het, het ons oortuig dat Jesus nie alleen die ewige lewe het nie, maar dit ook vir ons kan en wil gee. Omdat niemand so naby die hemelse Vader staan as juis Hy nie, kan Hy dit doen. Wat ons gesien en gehoor het, het ons so beïndruk dat ons julle eenvoudig daarvan moet vertel. Julle weet mos van die geestelike familie van die hemelse Vader en sy Seun, Jesus Christus. Ons behoort nou aan daardie familie. Ons wil so graag hê dat julle ook deel daarvan moet word. As dít kan gebeur, sal ons baie bly wees. Daarom skryf ons aan julle. Jesus het vir ons belangrike dinge kom sê. Ons het mooi na Hom geluister. Wat Hy vir ons gesê het, vertel ons nou weer vir julle. God kan vergelyk word met die lig wat skyn. Soos die lig die duisternis verdryf, so verdryf die teenwoordigheid van God die Bose heeltemal. Hou dit nou in gedagte vir die volgende vraag: As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan ’n kind van God die Almagtige is nie. Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag. Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was - daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan. Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie. As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is. Dan is daar nog van ons wat wil beweer dat ons nie foute maak of sonde doen nie. Verbeel jou! Deur dit te sê maak hulle van niemand anders nie as God self ’n leuenaar! Húlle verstaan nou regtig niks van God se boodskap nie. My liewe kinders, daar is ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf. Julle moet nooit iets doen waarvan God nie hou nie. As een van ons egter wel so ’n fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat ons op ’n baie besondere manier sal help. Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien. Jesus Christus is nie net bereid om dit vir óns te vra nie, maar ook vir elke mens op aarde wat bereid is om na Hom toe te kom. Maar ons kan ons afvra: Hoe kan ons seker weet dat ons Hom so goed ken dat Hy dit alles vir ons sal doen? Wel, as ons graag doen wat Hy van ons vra, kan ons seker wees. Daarteenoor is iemand wat beweer: “Ek ken Hom baie goed,” maar nie doen wat Jesus vra nie, natuurlik ’n leuenaar. So iemand kan nie eens “waarheid” spel nie. Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê. Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly. My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al. Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges. Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn. Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só: die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie. Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg. Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed. Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose behoorlik op die neus laat kyk. Ek het vir julle my hand op papier gesit, kinders, omdat julle die Vader persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is. Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop straal God se boodskap uit alles wat julle doen. Moenie na die pype van hierdie wêreld dans nie. Moenie lief word vir die dinge wat vir die wêreld belangrik is nie. As iemand dit doen, kan hy mos nie sê dat hy lojaal teenoor die Vader is nie. Met wêreldse dinge bedoel ek dít: dit is begeertes wat deur menslike en wêreldse belange aangeblaas word sonder om met God rekening te hou; dit is om alles wat jou oë sien vir jouself te wil hê, en dit is om heeltyd net met jouself en dit wat jy het te spog. Dié dinge kom nie van die Vader af nie. Dit borrel op uit die fontein van die wêreld. Maar onthou dit: die aardse dinge is net tydelik. Daarom is al die begeertes daarna ook maar net ’n gejaag na wind. Maar die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in. My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom. Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense. Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is. As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie. Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris! Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan. Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet ’n groot invloed op julle uitoefen. As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ’n nuwe lewe saam met God kom aanbied. Ek het hierdie dinge geskryf oor mense wat julle om die bos wil lei. Wat julle betref: julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit. Hy wil hê julle moet spesiale dinge vir Hom doen. Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie. Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie. Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het. My liewe kinders, konsentreer nou daarop om baie naby aan Jesus te bly leef. Julle vra waarom. Wanneer Jesus sigbaar terugkom, sal julle dan nie so skaam hoef te voel dat julle wil weghardloop nie. Nie kop onderstebo nie, maar met oop arms sal julle Hom dan kan verwelkom. Julle weet mos dat Jesus se verhouding met God in elke opsig foutloos is. In alles wat Hy doen, tree Hy reg op. Dít is vir julle die toets: elkeen wat so volgens God se wil reg optree, is ’n ware kind van God. Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak - dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie. My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge nog alles in die toekoms met ons gaan gebeur, is ons nie seker van nie. Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word. Vertrou jy Jesus so dat jy dít van Hom verwag? Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees. Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls te oortree. In Jesus is daar egter geen teken van sonde nie. Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie. Die rede waarom Hy gekom het, was juis om die sonde te kom vernietig. Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie. Wie gedurig só agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne: “Ek weet nie wie Jesus is nie; ek het Hom nog nooit gesien nie en ken Hom nie.” Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg. Daarteenoor is iemand wat gedurig alles doen waarvan God nie hou nie, ’n kind van die duiwel. Die duiwel doen mos nog altyd dit waarvan God nie hou nie. Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie. Wil julle weet wie ’n kind van die duiwel en wie ’n kind van God is? Kyk maar, iemand wat nie doen wat vir God reg is nie en sy broer of suster nie liefhet nie, is beslis nie ’n kind van God nie. “Ons moet mekaar liefhê!” Hierdie boodskap het julle reg van die begin af gehoor. Moenie soos Kain wees nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy sleg van binne was. Jy sou kon vra wat hom gedryf het om dit te doen. Wel, hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Kain het dinge gedoen wat sleg was, maar sy broer het dinge gedoen wat voor God reg was. Julle moet dus nie verbaas wees nie, broers, as die ongelowige wêreld julle haat. Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir ons medegelowiges. Aan die ander kant is iemand sonder liefde in die kloue van die geestelike dood. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie. Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee. Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie. My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan. Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie. Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het. Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete. Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom. Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier! My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan! Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister. Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is. My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word. Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk. Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom. God het ons lief. Ons weet en glo dit. God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef. So bereik die liefdevolle God sy doel met ons: ons kan die oordeelsdag met vrymoedigheid, sonder om bang te wees, tegemoetstap. In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n. Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie, veral nie vrees vir God se finale oordeel nie. Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees. Iemand wat dus nog sulke vrees in hom ronddra, se lewe is nog nie heeltemal deurdrenk met God se liefde nie. En hoekom nie? Want vrees is net heeltyd bekommerd oor die straf wat kan kom. God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie. As iemand vertel dat hy God liefhet, maar liefdeloos teenoor ’n medegelowige optree, is hy ’n regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy nie eens sien nie? Wie God liefhet, het geen ander keuse as om ook sy medegelowige lief te hê nie. Dit is die opdrag wat Hy vir ons gegee het. Elkeen wat geen twyfel daaroor het dat Jesus die Messias is nie, kan weet dat God hom sy kind gemaak het. Elkeen wat God wat mense sy kinders maak, liefhet, het ook almal lief wat sy kinders is. Wie dus die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef. Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God. Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. Daar is drie wat getuienis aflê: eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde. Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem. Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis. Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het. Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat. Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra. Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie. Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose. Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe. My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien. Van die oudste, julle geestelike leier. Hierdie brief is vir die gemeente, die uitverkore vrou en haar kinders. Ek het julle regtig lief soos ’n Christen iemand lief behoort te hê. Dit geld nie vir my alleen nie. Almal wat God se waarheid leer ken het, het julle ook so lief. Immers, die waarheid gee vir ons rigting in die lewe. Dit sal vir ewig so bly. En dit is nie al nie. Ons het ook daardie uitsonderlike vrede wat net God kan gee. God, ons Vader, en sy Seun, Jesus Christus, is so goed vir ons, sonder dat ons dit verdien. Ons is mos mense wat elke dag uit God se waarheid en liefde leef. Ek het van julle gemeentelede raakgeloop. Die goddelike waarheid straal sommer uit die manier waarop hulle hulle gedra. Ek kan julle nie sê hoe bly ek was nie! Dié soort lewenstyl is mos wat ons hemelse Vader van ons wil hê. Liewe vrou, ons moet mekaar liefhê! Ek vra mooi. Ek vra nie nou iets wat ek nie voorheen van julle gevra het nie. Dit is die ou opdrag wat ons nog altyd het. Liefde is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie. En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die evangelie gehoor het. Nou iets anders. Pas op! Die wêreld is vol mense wat ander om die bos wil lei. Hulle ontken dat Jesus Christus regtig mens van vlees en bloed geword het. Iemand wat so sê, is die misleier en die antichris. Wees daarom op julle hoede. Moenie toelaat dat ons werk onder julle ontspoor nie. Julle moet mos nog die volle beloning van God ontvang. Daar is dus twee moontlikhede: Iemand kan vierkant agter die leer oor Jesus bly staan en so aan die kant van die Vader en die Seun bly staan. Iemand kan in ’n ander rigting koers kry en nie vas bly staan by die leer oor Jesus nie. So ’n persoon staan nie aan die kant van God nie. Veronderstel daar daag iemand by julle op en vertel julle allerhande snaakse dinge oor Jesus Christus, wat moet julle doen? Moenie hom in julle huis innooi nie. Om die waarheid te sê, julle moet hom nie eens groet nie. Moet glad nie die idee skep dat julle iets met hom te doen wil hê nie. Deur hom bloot te groet sê jy eintlik al: “Ek en jy is goeie vriende. Ek is deel van al die slegte en verkeerde dinge wat jy doen en sê.” Ek het nog so baie om aan julle te skryf. Dit gaan egter vir ons almal baie lekkerder wees om dit persoonlik met mekaar te bespreek. Ek hoop daarom om binnekort by julle te kom kuier. Ek skryf dus nie verder nie. Die gemeente hier - of, soos gelowiges ook kan sê, “die kinders van jou uitverkore suster” - stuur groete. Van die oudste, die geestelike leier, aan my liewe en goeie vriend Gaius. Ek het jou lief soos ’n Christen iemand lief behoort te hê. Ek weet dat dit sommer uitstekend met jou geestelike lewe gaan. Ek hoop dat dit ook van al die ander dinge in jou lewe waar sal wees, veral ook wat jou gesondheid betref. Ek bid daarvoor. Gaius, ek kan jou nie sê hoe lekker ek gevoel het toe mede-Christene kom vertel het hoe belangrik die goddelike waarheid vir jou is nie. Hulle het kom vertel dat die manier waarop jy leef werklik ’n vertoonvenster vir daardie waarheid is. Ek was regtig bly toe ek dit hoor. Daar is sowaar niks wat my blyer maak as die nuus dat my geestelike kinders in alles wat hulle doen openlik vir die waarheid uitkom nie. My liewe vriend, jy doen regtig wat ’n gelowige behoort te doen. Ek praat daarvan dat jy jou geestelike broers en susters wat daar by julle langs gekom het, vriendelik ontvang en gehelp het. Dit het nie eens vir jou saak gemaak dat jy hulle nog nooit voorheen gesien het nie. Toe hulle weer hier by ons gemeente aangekom het, het hulle ons alles vertel, en dit was ’n mooi verhaal van jou liefde. Jy doen die regte ding om sulke mense op reis te help. As jy dit doen, kan jy maar seker weet dat God sy hand van tevredenheid op jou skouer sal sit. Hierdie mense het die reis aangepak omdat Jesus dit van hulle gevra het. Van ongelowiges kry hulle natuurlik geen hulp nie. Ons het dus die plig om sulke mense te help waar ons kan. Op dié manier word ons ook deel van die span wat die goddelike waarheid oral versprei. Ek het vroeër ook so iets aan julle gemeente geskryf. Diotrefes was egter die vlieg in die salf. Hy is mos iemand wat altyd baas wil speel. Hy wou glad nie aanvaar wat ek geskryf het nie en het dit geïgnoreer. Dít kan ek nie so los nie. As ek weer na julle toe kom, sal ek hom onder vier oë spreek oor die goed wat hy aanvang en rondvertel. Hy versprei allerhande lelike en sommer bose stories oor ons en dit is net ’n hoop leuens. Dit is nie al nie. Dit word nog erger! Hy weier om mede-Christene gasvry te ontvang. Hy staan ook sowaar in die pad van diegene wat dit tog graag wil doen. En as hulle nie na hom wil luister nie, gooi hy hulle sommer uit die gemeente uit. My liewe Gaius, neem die goeie as voorbeeld en patroon vir jou lewe en nie die slegte nie. Onthou, die een wat die goeie doen, is die kind van God. Daarteenoor het die een wat slegte dinge doen nie naastenby ’n begrip van hoe God lyk nie. Almal praat net met die hoogste lof van Demetrius. Om dit so te stel, as jy die waarheid self sou kon vra, sou die getuienis net so bevestigend gewees het. Ons kan hierdie goeie getuienis oor hom maar net bevestig. En julle weet mos dat ons die waarheid sal praat. Ek het nog so baie dinge om met jou te bespreek, maar ek wil dit nie skriftelik doen nie. Ek hoop om jou binnekort te sien. Dan sal ons die kans hê om lekker saam te sit en gesels. Ek wens jou die vrede toe wat net Jesus kan gee. Die vriende hier stuur vir jou groete. Wees asseblief ook so gaaf om daar by julle na elkeen van die vriende persoonlik te gaan en aan hulle my groete oor te dra. Van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en die broer van Jakobus. Ek skryf aan almal van julle wie God die Vader geroep het om in Hom te glo. Hy het julle baie lief. Julle word deur Jesus Christus opgepas. My gebed is dat die sluise van God se onverdiende goedheid, sy hemelse vrede en sy liefde voluit oor julle lewe oopgetrek sal word. My liewe vriende, ek het al lankal besluit om aan julle te skryf. My plan was om met julle te praat oor wat dit vir ons almal beteken om in Christus te glo. Maar toe ek hoor wat daar by julle aan die gang is, het ek dadelik van plan verander. Nou skryf ek om julle aan te spoor - nee, om julle te smeek! - om wal te gooi. Julle moet keer dat die ware geloof deur allerhande vals stories verdraai word. Julle weet tog dat die goeie nuus oor Christus eens en vir altyd deur God se boodskappers aan ons almal in die kerk bekendgemaak is. Niemand kan nog enigiets daarby voeg nie. ’n Klompie vals mense het stil-stil daar by julle in die kerk ingesluip. Hulle is ’n goddelose spul. Maar gelukkig het God al lankal besluit wat Hy met hierdie mense gaan doen. Sy oordeel wag op hulle. Hulle misbruik die goedheid wat God aan ons bewys het, tot hulle eie voordeel. Hulle verdraai dit sodat hulle kan aanhou met hulle smerige sondes. So verwerp hulle ons enigste Meester en ons Here, Jesus Christus. Al ken julle die geskiedenis van Israel, wil ek julle gou weer herinner aan hoe die Here vroeër met sy volk gemaak het wat sy goedheid vertrap het. Toe Hy sy volk uit Egipte verlos het, het Hy almal van hulle vernietig wat nie in Hom geglo het nie. Julle ken ook die verhaal van die engele wat hulle hemelse woonplek verlaat het. Hulle is nou God se gevangenes. Hulle word daar in die pikdonker dieptes van die doderyk vasgeketting totdat God se groot oordeelsdag aanbreek. Julle onthou ook van Sodom en Gomorra en ’n paar ander stede in hulle omgewing. Hulle het dieselfde sondes as die engele gepleeg. Hulle het hulle oorgegee aan losbandigheid. Hulle het selfs probeer om seksuele gemeenskap met die engele te hê. Nou brand hulle almal in die oordeelsvuur. Hulle pyn sal nooit ophou nie. Dit moet ’n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef. Die mense wat daar by julle ingesluip het, vang dieselfde dinge aan. Hulle spog oor sogenaamde openbarings wat hulle in hulle drome ontvang het wat aan hulle die reg gee om verkeerde dinge te doen. Daarom pleeg hulle die afstootlikste sondes. Hulle steur hulle glad nie aan die Here se gesag nie. Kyk net hoe beledig hulle die engele in die hemel. Weet julle, nie eens Migael, die hoof van die engele, het dit gewaag om een lelike ding te sê toe hy en die duiwel op ’n dag met mekaar in ’n woordestryd gewikkel was nie. Dit was na Moses se dood toe hulle gestry het oor wat van sy liggaam gaan word. Tog het Migael nie ’n enkele beledigende woord vir die duiwel gesê nie. Hy het dit aan God oorgelaat om hom te veroordeel. Al wat Migael vir die duiwel gesê het, was: “Die Here sal met jou afreken; Hy sal jou straf!” Daardie mense daar by julle sê allerhande lelike dinge oor die engele. Hulle weet nie waarmee hulle besig is nie. Hulle is soos ’n trop wilde diere wat geen verstand het nie. Hulle loop agter hulle dierlike instinkte aan. Dit is juis hulle ondergang. ’n Verskriklike einde wag op hulle. Hulle stap op dieselfde pad van sonde as Kain. Hulle pleeg dieselfde bedrog as Bileam ter wille van geld. En, net soos Korag, kom hulle in opstand. Hulle ondergang staan vas. Hierdie mense besoedel die feesgeleenthede waar julle nagmaal hou. Wat ’n skaamtelose spul! Hulle dink net aan hulleself. Hierdie mense is soos wolke wat geen reën bring nie en wat deur die wind rondgewaai word. Hulle is soos vrugtebome wat laat in die seisoen nog geen vrugte gedra het nie. Hulle is soos bome wat morsdood is. Hulle is eintlik al klaar ontwortel. Hulle is soos reusegolwe wat net ’n spul nuttelose skuim op die strand uitspoel. Hulle is soos sterre wat uit hulle baan geslinger is en koersloos in die hemel rondswerf. God hou vir hulle almal ’n plek in die pikdonker dieptes van die doderyk gereed - vir altyd! Henog, daardie godvresende man uit die sewende geslag na Adam, het ons lank gelede al deur ’n profetiese woord teen hierdie sondaars gewaarsku. Hy het gesê: “Kyk mooi! Die Here is op pad met sy hemelse weermag. Hy kom om sy oordeel oor almal te voltrek. Vir sondaars sal dit ’n verskriklike dag wees. Elke goddelose daad wat mense in hulle slegtheid aangevang het en elke lelike woord wat hulle teen die Here kwytgeraak het, sal op daardie dag gestraf word.” Die indringers daar by julle is ’n opperste spul klakouse. Hulle is met niks tevrede nie. Hulle loop heeltyd agter al hulle sondige begeertes aan. Boonop praat hulle groot. Hulle misbruik ander mense deur vleitaal, maar, wees gewaarsku, dis glad nie eg nie. My liewe vriende, julle moet onthou dat die apostels van ons Here Jesus Christus julle vroeër ook teen hierdie mense gewaarsku het. Hulle het vir julle gesê: “In die laaste dae op aarde sal daar mense op die toneel verskyn wat agter al die sondes aanloop en doen net wat hulle wil. Hulle sal ’n bespotting van julle maak.” Hierdie slegte mense is besig om die kerk in twee te skeur. Al wat vir hulle saak maak, is hulle eie onbeheerbare drange en drifte. Die Gees van God is glad nie in hulle lewe te sien nie. My liewe vriende, kom ek sê vir julle wat julle moet doen om op die regte pad te bly: Sorg dat julle geloof dag na dag sterker word. Bou julle hele lewe op God. Laat toe dat die Gees kragtig deur julle werk wanneer julle bid. Laat God se liefde julle lewe omring soos ’n sterk muur. Plaas al julle hoop op die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy gee so baie vir julle om dat Hy vir julle die ewige lewe sal gee. Gee om vir mense wie se geloof nog swak is. Help hulle sodat hulle geloof sterker kan word, al verdien hulle dit nie. Diegene wat op sleeptou geneem word deur hierdie mense se doen en late moet julle uit die vuur ruk voordat dit te laat is. En aan ander mense wat verkeerd doen, moet julle die nodige liefde bewys. Doen dit versigtig, maar hou aan, ook al verdien hulle dit nie. Julle moet egter niks te doen hê met al die verskriklike dinge wat hulle aanvang nie. Ons dien ’n wonderlike God. Hy is baie sterk. Hy kan sorg dat julle nooit in die sonde val nie. Hy kan julle beskerm sodat julle veilig by Hom in sy nuwe wêreld aankom, vol vreugde en met lofliedere in julle hart sodat julle sy grootheid vir altyd kan beleef. Aan die enigste ware God, ons Redder deur Jesus Christus, ons Here, behoort al die hemelse glorie en koningskap, die krag en die mag van altyd af, maar ook vandag en môre - ja, tot in die verste ewigheid. Vir seker! Amen. Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief. Dit is so: God het vir Jesus Christus gewys wat alles in die geskiedenis voorlê. Op sy beurt moes Hy dit wys vir mense wat Hom dien. Dit het Hy gedoen deur ’n engel na sy dienaar, Johannes, te stuur. Hier volg nou Johannes se presiese weergawe van daardie boodskap van God. Jesus Christus self staan in vir die waarheid daarvan. Johannes het alles wat hy deur visioene gesien het, mooi neergeskryf. Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie. Ek, Johannes, skryf aan die sewe gemeentes in Asië (daar in Wes-Turkye). Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie. Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees. Die goeie wense kom ook van die Heilige Gees af wat sorg dat alles gedoen word wat God as Heerser wil hê. En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie. Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker. “Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees! “Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles. Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek. “Skryf alles wat jy sien en beleef letter vir letter in ’n boek neer. Stuur dit dan aan die volgende sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek draai toe versigtig om om te sien wie so met my praat. Met die omdraai val my oog op sewe kandelare. Hulle was baie werd, want hulle was van goud gemaak. Hierdie kandelare, sou ek agterkom, is eintlik die sewe gemeentes aan wie ek skryf. Tussen hierdie kandelare het ek Iemand sien staan. Dit het vir my gelyk soos die Seun, die Een wat van God af sou kom om finaal te kom sê wat God oor die mense besluit het. Hy het pragtige klere aangehad, soos dié wat belangrike mense dra. Soos die heel belangrikste priester van ouds het hy goud om sy bors gedra. Dit het gewys hoe belangrik Hy regtig is. Sy wysheid kon ’n mens sien aan sy spierwit hare. Dit was ook duidelik dat niemand iets vir daardie gloeiende oë kon wegsteek nie. Sy voete was soos warm geelkoper wat net uit die oond gekom het. Waar daardie voete trap, bly niks oor nie! Wanneer Hy praat, is dit oorverdowend, soos baie harde reën op ’n sinkdak. Mense se stem verdof eenvoudig. [16-20] In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Die sterre is die leiers van die sewe gemeentes wat moes sorg dat dit in die gemeentes gaan soos Jesus dit wil hê. Uit sy mond het ’n swaard gekom. Dit was aan al twee kante vlymskerp. Waar sy oordeelswoorde moet sny, sal dit kan sny! En die oorwinning en glans op sy gesig - dit was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek het mos gesterf, maar lyk Ek vir jou dood? Nee, Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit. Ek besluit wie bly dood en wie nie. “Toe, Johannes, skryf neer wat jy sien en ervaar. Jy sal dinge sien wat nou aan die gang is en dinge wat nog voorlê.” Skryf aan die leier van die gemeente in Efese die volgende: Dit is die Een wat die sewe leiers soos sterre in sy regterhand hou wat met julle praat. Ja, dit is Hy, Jesus, wat gedurig by sy sewe gemeentes, die sewe goue kandelare, is. Ek weet wat julle doen. Ek sien hoe julle alles ter wille van die evangelie doen en weier om moed op te gee. Ek sien dat julle slegte mense nie voor julle oë kan verdra nie. Julle glo ook nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat voorgee dat hy God se boodskap preek nie. Ek weet julle het al ’n klomp van hulle vasgetrek wat voorgegee het om “groot predikers” te wees, maar van die kansel af staan en lieg. Mooi so! Ek herhaal: Ek kyk julle sterk eienskappe nie mis nie. Ek sien hoe julle vasbyt wanneer dit swaar gaan. Julle hou maar net aan en aan, omdat julle dit graag vir My wil doen. Julle word nie moeg daarvan nie. Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie. Dink mooi hoe julle eers was en hoe julle nou is. Julle het darem ver geval! Verander weer julle gesindheid en optrede. Begin weer leef soos julle eers geleef het. Doen wat Ek graag wil hê julle moet doen. As julle nie wil verander nie, maar bly leef soos julle nou leef, het Ek slegte nuus vir julle. Julle gemeente sal ophou bestaan. Ek self sal julle gemeentekandelaar tussen die ander wegvat. Ek sê nie julle het niks wat in julle guns tel nie. Julle haat mos die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek hou ook niks van hierdie klomp vals mense nie. Spits julle ore! Luister na die boodskap van die Heilige Gees. Dit is vir julle, die gelowiges, bedoel. Wie nie langs die pad uitval nie, maar enduit volhou, sal Ek beloon. Hy sal mag eet van die “boom van die lewe” wat in God se tuin, die paradys, staan. As iemand eers van hierdie boom se vrugte geëet het, sal hy nooit doodgaan nie. Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna die volgende: Dit is die Een wat voor alles in die skepping daar was en wat nog daar sal wees wanneer alles verby is, wat met julle praat. Dit is Ek, Jesus, wat dood was en weer lewendig geword het. Ek weet hoe swaar julle kry. Ek sien hoe arm julle is. Onthou, julle is wel nie ryk hier op aarde nie, maar op ’n ander manier is julle ryk. Ek hoor hoe sleg daardie Jode julle maak. Hulle sleep julle naam deur die modder. Maar moenie te sleg voel daaroor nie. In God se oë is hulle nie meer sy mense nie. Hulle kom bymekaar in die huis van Satan. Moenie tou opgooi as mense julle op die pad vorentoe seermaak en terroriseer nie. Luister, die duiwel gaan sorg dat party van julle in die tronk beland. ’n Tyd lank sal julle regtig swaarkry. God sal egter sorg dat dit nie te lank duur nie. Sien dit as ’n toets vir julle geloof en lojaliteit teenoor My, al maak hulle julle dood. Moenie ophou nie, maar hou vol tot by die wenpaal. Daar sal Ek self vir julle die prys gee wat wenners behoort te kry: die lewe wat nooit sal ophou nie. Luister mooi. Die Heilige Gees sê hierdie dinge vir julle. Die een wat enduit ’n Christen bly se liggaam mag wel een maal doodgaan, maar hy sal nooit die ewige lewe verloor nie. Daar is geen manier waarop die dood dáárdie lewe van hom kan wegvat nie. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Pergamum: Dit is die boodskap van Hom wie se woorde diep sny soos ’n swaard wat aan albei kante skerp gemaak is. Ek weet waar julle bly. Dit is waar Satan se troon staan, maar nogtans bly julle My dien. Julle is nie bang om te sê dat julle in My glo nie. Selfs toe Antipas doodgemaak is omdat hy, sonder om ’n tree terug te staan, mense van My vertel het, het julle ook nie julle geloof weggesteek nie. So te sê op die voorstoep van Satan self het julle My bly dien. Maar Ek het nog ’n klomp probleme met julle. Party van julle gemeentelede luister na alles wat Bileam sê. Dit is mos hy wat vir Balak geleer het hoe om die Israeliete om te praat om afgode te begin dien. Die Israeliete het selfs aan die vieslike en onsedelike feeste deelgeneem en lekker aan afgodsvleis gesmul. Julle laat julle net so deur die Nikolaïete mislei. Julle eet maar alles wat hulle sê vir soetkoek op. Los hierdie dinge en luister weer voluit na My. As julle dit nie doen nie, sal julle gou julle fout agterkom. Ek sal die klomp ongehoorsames onder julle tref met die skerp swaard uit my mond. Hulle sal voel wat dit beteken om onder my oordeel deur te loop. Maak oop julle ore. Luister mooi na wat die Heilige Gees vir julle sê. Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons. Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle. Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook. Ek het haar oorgenoeg kans gegee om van die verkeerde pad af om te draai, maar sy wou nie. Sy vaar maar voort in haar onsedelikheid. Kyk nou mooi. [22-23] Ek gaan haar met ’n siekbed straf. En almal wat saam met haar so onsedelik geleef het, sal bitter swaarkry. Daarvoor sal Ek sorg. Dit is hulle voorland, behalwe as hulle heeltemal ’n omkeer in hulle lewe maak en My weer voluit begin dien. Ek sal elkeen uitwis wat haar slegte voorbeeld volg. Elke kerklidmaat sal dan besef dat mense My nie om die bos kan lei nie. Nee, niemand kan iets vir My wegsteek nie. Ek weet wat elkeen dink en wat hier diep binne hom aangaan. Onthou dit maar: elke gelowige sal van My kry wat hy volgens sy optrede verdien. *** Daar is ook nog ’n klomp ander gelowiges in Tiatira. Hulle steur hulle nie aan die verkeerde dinge wat Isebel se mense kwytraak nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens moeite gedoen om agter te kom wat die sogenaamde “diep kennis” is waaroor hierdie mense so te kere gaan nie. Dit kom buitendien van Satan af. Vir hulle wil Ek dit nie met ekstra versoeke swaarder maak as wat dit reeds is nie. Al wat Ek vra, is: Staan net vas by die evangelie soos julle dit leer ken het, tot Ek weer kom. Hy wat hom deur niks laat stuit nie en tot heel aan die einde doen wat Ek wil hê, sal nie spyt wees nie. Ek sal sulke mense mag gee om oor die lot van al die mense op aarde te besluit. [27-28] Die Vader het presies daardie mag vir My gegee. Julle sal oor al die mense heers. Met mense wat dit nie wil aanvaar nie, sal dit gaan soos met ’n porseleinpot wat met ’n yster in stukke geslaan word. Maar, vir elkeen wat volhou om My te dien, sal Ek ’n nuwe en wonderlike toekoms gee. *** Maak oop julle ore. Hoor wat die Heilige Gees vir julle as Christene wil sê. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Sardis: Dit is die boodskap van Jesus wat die ware Gees van God het; ja, Hy vir wie al die leiers van die gemeente werk. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Julle gee voor dat julle so ’n lewendige gemeente is. Almal is selfs aan die praat daaroor. Tog weet Ek dat julle geestelik morsdood is. Skrik wakker en ruk julle reg! Sorg dat julle die bietjie Christelikheid wat oorgebly het nie ook verloor nie. Werk hard daaraan! Ek is in alle geval baie seker daarvan dat my God allesbehalwe tevrede sal wees met die manier waarop julle nou aangaan. Dink ’n slag weer lank en diep na waaroor die Christelike boodskap presies gaan. En moenie net daaroor nadink nie; leef so! Draai weg van die verkeerde dinge af. Volg My weer voluit! En as julle julle nie hieraan steur nie en maar op julle ou manier voortgaan, wag daar ’n verrassing op julle. Ek sal na julle toe kom wanneer julle dit die minste verwag. Dan sal Ek julle geestelik vas aan die slaap betrap. Daar is tog ’n paar uitsonderings onder julle daar in Sardis. Ek praat van die mense wat nog nie in die modder van die sonde baljaar het nie. Hulle geestelike klere is nog mooi skoon. Vir sulke mense het Ek respek. Hulle kan maar oral saam met My in hulle mooi, skoon klere stap. Wie nie as Christen moed verloor en opgee nie, sal sulke mooi, skoon, wit klere kry om aan te trek. Sy naam is met onuitwisbare ink in die boek van die lewe geskryf. Almal wat die ewige lewe het, se name staan daarin geskryf. En Ek sal mooi dinge van elkeen van hulle persoonlik vir God en sy engele vertel. Luister aandagtig na wat die Heilige Gees alles vir die Christene te sê het. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Filadelfia: Hier is ’n boodskap vir julle. Dit kom van Jesus af wat nie een stukkie valsheid of leuen in Hom het nie. God is die fokus van sy hele lewe. Hy het die sleutel van Dawid om vir mense die deur na die nuwe Jerusalem oop te sluit of toe te sluit. Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie. Ek weet waarmee julle julle besig hou. Kyk mooi. Ek het vir julle ’n deur oopgemaak. Niemand kan dit toemaak nie. Julle invloed in Filadelfia is maar klein. Ek weet dit! Maar dit bring julle nie van stryk nie. Julle leef soos Ek van julle vra. Boonop is julle nie skaam of bang om te erken dat julle Christene is nie. Kyk! Daar is mos mense in julle dorp wat hulleself graag Jode noem en voorgee dat hulle deel is van God se mense. Maar waar kry jy hulle? Natuurlik, op die plek waar net die duiwel se mense bymekaarkom. Ek sal persoonlik sorg dat hierdie mense wat so baie van hulleself dink eendag voor julle sal moet kom staan. Daar voor julle sal hulle op hulle knieë moet val en laag moet buig. Een ding sal hulle dan deeglik besef: dat Ek aan julle kant is omdat Ek julle liefhet. Ek het julle gevra om nie moed te verloor nie en julle het regtig vasgebyt tot die einde toe. God sal in ’n stadium elke mens op hierdie aarde toets. Daar gaan dinge gebeur wat swaar is. In hierdie baie moeilike tye kan elke gelowige maar weet: Ek sal na hom kyk! Ek kom een van die dae na julle toe. Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê. Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees. Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle ’n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee! Nou is julle so tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie. Julle is nogal die mense wat dit waag om te spog. “Kyk hoe ryk is ons,” sê julle. “Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van iemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!” Ai, al hierdie gespog maak dat julle heeltemal blind is vir hoe pateties dit regtig met julle gaan. ’n Mens wil eintlik sommer oor julle aan die huil gaan. Kyk net hoe lyk julle: julle is geestelik brandarm en bankrot. Boonop besef julle dit nie eens nie, want julle is soos blindes. Laat Ek julle goeie raad gee: kom koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom kry by My behoorlike, geestelike klere en trek dit aan. Dan hoef julle nie meer uit verleentheid te probeer wegsteek dat julle eintlik geestelik kaal is nie. Ek het ook net die regte medisyne om op julle oë te sit sodat julle geestelik weer kan sien wat julle behoort te sien. Mense vir wie Ek regtig omgee, help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag. Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly. Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraaipaadjies en stap net agter God aan. Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen. Die Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God ’n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. Ek het alles presies gedoen soos my Vader van My verwag het. Daarom is Ek ’n wenner wat nou langs my Vader op sy troon sit. Wie kan hoor, moet goed luister na wat die Heilige Gees vir al die Christene te sê het. Ek kyk toe op en wat sien ek daar? Soos dit vir my gelyk het, was daar aan die blou koepel van die hemel ’n deur wat oopgestaan het. Ek hoor toe Iemand met my praat. Dit was dieselfde stem wat ek die heel eerste keer gehoor het. Dit was mos so hard soos ’n trompet wat in my oor geblaas word. Hy sê toe vir my: “Kom op hierheen. Dan sal Ek jou wys hoe alles van hier af gaan gebeur.” Die Heilige Gees het met my laat gebeur wat die stem gevra het. Ek is deur die deur in die hemel in. Daar, in die hemel, het ’n troon gestaan. Iemand, God self, het op die troon gesit. Toe ek na Hom kyk, was dit of ek na edelgesteentes kyk wat wit en rooi lig weerkaats. Dit het my daaraan laat dink hoe groot God is, maar ook laat besef dat Hy goddeloses gaan oordeel. ’n Pragtige reënboog het ook God se troon omraam. Dit het geskitter soos ’n groen edelsteen. Dit het my laat besef dat God wat op die troon sit, altyd getrou is. Rondom hierdie groot troon in die middel het daar nog 24 trone gestaan. Op elkeen van hierdie trone het ’n leier van die kerk gesit, 24 van hulle. Hulle het duur, wit klere aangehad en soos konings het elkeen met ’n goue kroon op sy kop gesit. Hulle het saam met God geheers. Blitse het geslaan en die donder het uit die rigting van die troon gerommel. Die Gees van God het voor God se troon gestaan, gereed om sy werk te gaan doen. Dit het kompleet gelyk soos ’n klomp helder ligte wat gelyk brand. Voor die troon was dit of daar ’n see van glas was, glad en stil. Dit het my laat besef dat niks van Satan se bose onrustigheid God se kalmte ooit sal kan versteur nie. Aan elkeen van die vier kante van die troon het ’n lewende wese gestaan. Hulle het baie besonders gelyk. Hulle het niks misgekyk nie, want hulle was oortrek van die oë. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk en die tweede een soos ’n os. Die derde een het ’n gesig soos ’n mens s’n gehad en die vierde een het gelyk soos ’n arend wat vlieg. Hierdie vier wesens het die skepping verteenwoordig: die arend het die vlieënde diere, die leeu die wilde diere en die os die mak diere verteenwoordig en die een met die gesig van ’n mens het al die mense verteenwoordig. Elkeen van die vier diere het ook ses vlerke gehad. Niks in die skepping was dus buite hulle bereik nie, want met hulle vlerke kon hulle oral vlieg. Die vlerke was ook oortrek met oë wat alles sien. Dag en nag, sonder ophou, het hulle bly sê: “Heilig, heilig, heilig is God die Here, die Een wat mag oor alles het. Hy was nog altyd daar, Hy is nou steeds by ons, en Hy sal in die toekoms nog altyd by ons wees.” Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie. Wanneer die 24 leiers van die kerk dit hoor, val hulle uit eerbied voor God neer wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en altyd leef. Hulle sit die krone voor God neer om te wys dat Hy die enigste werklike heerser is. Dan sê hulle in ’n koor: “Here, ons God, wie kan so belangrik wees soos U? Na U sien almal op; U is sterker as die sterkstes. En dit is ook reg so, want dit is hoe U is. Ja, U het alles gemaak. Alles in die skepping is daar omdat U dit so wou gehad het.” Ek het weer na God op die troon gekyk. Nou het Hy in sy regterhand ’n boek gehou. Dit was van hoek tot kant vol geskryf, selfs op die buiteblad. Die boek was egter toe en verseël met sewe seëls. Niemand het dus geweet wat daarin staan nie. Toe sien ek ’n sterk engel. Hy roep toe hard uit dat almal kan hoor: “Wie is belangrik genoeg om die boek oop te maak? Wie mag die seëls breek?” Daar was niemand nie! Daar is oral gesoek; in die hemel, oral op die aarde en selfs onder die aarde. Daar was nie een wat die boek kon oopmaak en lees wat daarin staan nie. Toe ek sien hulle kan niemand kry nie, het ek in trane uitgebars. Een van die leiers van die kerk kom troos my toe: “Hou net dop wat gebeur. Niemand en niks kan die Leeu, uit die nageslag van Juda, wen nie. Hy is nie verniet ’n agteragterkleinkind van koning Dawid nie. Hy sal die seëls kan breek en die boek kan oopmaak.” Ek kyk toe weer mooi. My oë gly oor die troon en die vier lewende wesens tot tussen die leiers van die kerk wat daar sit. Daar, in die middel van almal, sien ek toe ’n Lam staan. Die snymerk oor sy keel asof Hy geslag was, het my dadelik opgeval. Al was Hy ’n lam, was Hy duidelik baie, baie sterk. Dit kon ek aan sy sewe horings sien. Hy het ook sewe oë gehad. Dit het beteken dat God se Gees self deur en saam met Hom werk. Daar is nie ’n plek in hierdie wêreld waar die Heilige Gees nie is nie. Toe loop die Lam na God se troon toe. Daar vat Hy die boek wat God in sy regterhand hou. Dít het die hemel in beroering gebring! Nie slegs die vier lewende wesens nie, maar ook al 24 leiers van die kerk sak toe uit eerbied en aanbidding op hulle knieë voor die Lam neer. Elkeen van hulle het ’n goue musiekinstrument vasgehou. Hulle het ook goue bakke by hulle gehad. Uit die bakke het daar die lekkerste geur gekom. Ek kon sien dat dit die gebede van die Christene was wat vir almal in die hemel so lekker is om te hoor. Die vier wesens en die leiers van die kerk begin toe die pragtigste lied sing wat ek nog ooit gehoor het. Dit was die eerste maal dat hulle die lied gesing het. “O, hoe groot en belangrik is U. U kan die boek vat en die seëls breek! U is mos soos ’n lam wat geslag is. U bloed, ja, u lewe, het U gegee sodat mense God se mense kon wees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie. U sorg dat hulle God as heerser oor almal erken. U maak dat hulle God met oorgawe, soos priesters, dien. Hulle sal ook eendag oor al die mense van hierdie wêreld heers.” Toe ek weer kyk, het ek derduisende engele gesien wat rondom die groepie leiers van die kerk, die vier lewende wesens en die troon staan. Hulle het in ’n massakoor hard gesing: “Die Lam met die wond aan sy nek is die belangrikste onder die belangrikstes. Soek jy krag? Jy sal dit by Hom kry. En rykdom? Dit is by Hom. En die kuns om te leef? Gaan leer maar by Hom. By Hom is die mag en die belangrikheid en eer en lof, ja, sommer alles.” Toe hoor ek hoe alles in die skepping ook saam begin sing. Letterlik alles en almal, of hulle in die hemel, op aarde, onder die aarde of in die see was, het gesing. Selfs alles in die see het saamgesing. Die ganse heelal het gesing: “Vir God wat op die troon sit en die Lam loof ons met al die goeie en mooi woorde wat ons ken. Al die eer en grootheid, al die krag is Hulle s’n vir ewig en altyd, sonder ophou.” Die vier lewende wesens het gesê: “Beslis, ja!” Die 24 leiers van die kerk het weer gekniel en God en die Lam aanbid. Ek het toe gestaan en kyk hoe die Lam een van die sewe seëls breek waarmee die boek verseël was. Juis toe hoor ek een van die vier lewende wesens sê: “Kom!” Dit het geklink soos donderweer wat slaan. Ek het gekyk. Sowaar, daar het ’n wit perd aangekom. Die ruiter het ’n oorlogswapen by hom gehad. Iemand het vir hom ’n kroon gegee soos die gewoonte was om vir iemand te gee wat gewen het. Hy het verder gery op ’n pad van oorwinning. Sy doel was om te wen en dit het hy gedoen. Die Lam het toe die tweede seël gebreek. Ek het gehoor hoe die tweede lewende wese sê: “Kom!” ’n Ander perd kom toe daar aan. Dié perd was rooi. Die ruiter is toegelaat om onrus op aarde te veroorsaak. Nêrens was daar meer behoorlik vrede nie. Mense het mekaar eenvoudig uitgewis. Vir dié ruiter is ’n lang swaard gegee om mense in die oorlog mee dood te maak. Toe die Lam die derde seël breek, hoor ek die derde lewende wese sê: “Kom!” Ek het weer rondgekyk. Soos verwag kon word, het daar weer ’n perd aangekom. Dié perd was swart. Die ruiter het ’n skaal vasgehou waarmee kos geweeg is. Ek hoor toe iemand uit die rigting van die vier lewende wesens sê: “’n Ou handjie vol meel vir ’n hele dag se werk of drie hande vol perdekos. Die duur kos soos olie en wyn sal julle nie kan bekostig nie; net die rykes sal!” Met die oopmaak van die vierde seël hoor ek die vierde lewende wese sê: “Kom!” Hierdie keer het ek ’n perd met so ’n vaal doodskleur aangehardloop sien kom. Die ruiter se naam was “Die Dood”. In sy spore het die hel gevolg. Hy is toegelaat om ’n kwart van die aarde onder sy mag te kry. Daar was dit net moord en doodslag. Wie nie met swaarde doodgekap is nie, is van honger dood. Wie nog oorgebly het, is deur verskriklike siektes afgemaai of deur wilde diere verskeur. Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie. Hulle het hard geskree sodat almal kon hoor: “O, hoe lank nog, grote Heerser? U is anders as mense en U is die bron van alle waarheid. Wanneer gaan U die mense straf wat so sleg lewe? Wanneer gaan U hulle laat betaal omdat hulle ons doodgemaak het?” God gee toe vir elkeen van hulle die duurste en pragtigste wit klere; klere wat ’n mens vir ’n belangrike geleentheid nodig het. “Wees nog ’n rukkie rustig,” sê God. “Moenie oorhaastig wees nie. Al julle mede-Christene wat God met soveel oortuiging saam met julle dien, is nog nie hier nie. Hulle moet nog eers soos julle vir God sterf.” Ek sien toe dat die Lam die sesde seël breek. Die aarde het geweldig begin skud en bewe. Asof iemand ’n pikswart doek oor die son gegooi het, het die son se strale verdwyn. Die maan was so ’n rooi kleur, net soos bloed. Sterre het uit die hemel op die aarde gereën. Dit het gelyk soos blare wat in die herfs van ’n boom afval as ’n mens dit kwaai skud. Die blou hemel is soos ’n pannekoek opgerol. Selfs die eilande en berge is heen en weer geskud en rondgegooi. Die mense het vir al wat hulle werd is, gehardloop en in grotte en klowe in die berge gaan wegkruip. Dit maak nie saak wie nie, almal moes hardloop: groot leiers, generaals, rykes, sterkes, werkers, gewone mense, almal. Uit die klowe en grotte kon ’n mens die geroep hoor. Die mense daar het die berge en rotse uit angs gesmeek: “Val asseblief op ons. Begrawe ons. Steek ons weg vir God wat oor alles heers. Ja, steek ons weg sodat ons nie hoor hoe kwaad die Lam vir ons is nie.” En kan ’n mens hulle kwalik neem? Die dag waarop hulle finaal deur God veroordeel gaan word, lê voor die deur. Nie ’n enkele een sal kan ontsnap nie. Dit was skaars verby of ek sien vier engele. Elkeen het in ’n ander windrigting gestaan. Hulle moes vir God die waai van die winde beheer. Vir eers het hulle die wind teruggehou. Daar het nie ’n luggie getrek of ’n blaartjie geroer nie. Toe sien ek nog ’n engel. Die engel het aangekom uit die rigting waar die son altyd opkom. In sy hand het die engel iets gehad om mense mee te merk wat aan die lewende God behoort. Die engel skree toe vir die ander vier engele sodat hulle duidelik kon hoor: “Wag so ’n bietjie. Moenie dat die wind nou al verwoesting saai oor die aarde en die see en die bome omwaai nie. Laat ons eers die mense merk wat God dien. Ons moet die merk van God wat wys dat hulle sy eiendom is, op hulle voorkop sit.” [4-8] Ek het gehoor hoeveel mense daar was wat gemerk moes word. Daar was 144 000. Hulle het uit elke stam van Israel gekom: 12 000 uit elk van die volgende stamme: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin. *** *** *** *** Daarna het ek ’n vreeslike klomp mense gesien. Hulle was so baie, ’n mens kon hulle nie eens tel nie. Hulle het van oral af gekom, maak nie saak waar hulle gebly of watter taal hulle gepraat het nie, hulle was daar voor God se troon en voor die Lam. Hulle was pragtig aangetrek en het baie deftig gelyk met hulle wit klere. Om te wys hoe vol vreugde hulle is, het hulle palmtakke rondgeswaai. Hulle het ook hard geskree sodat almal kon hoor: “Wil jy weet wie jou uit jou sonde kan red? Dit is ons God wat oor alles heers en die Lam wat dit kan doen!” Al die engele het in ’n sirkel rondom die troon en die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het op hulle knieë voor God neergeval en Hom aanbid: “Niemand hoef hieraan te twyfel nie! Al die lof behoort aan God. Hy is die belangrikste van almal. Hy weet alles. Vir Hom moet ons vir alles dankie sê. Wat ons sê of wat ons doen, moet wees om Hom groot te maak. Hy het al die krag. Niemand is so sterk soos Hy nie. Ja, ons praat van ons God. Dit was van altyd af waar en sal vir altyd van Hom waar bly. Daaraan hoef niemand te twyfel nie!” Een van die leiers van die kerk vra my toe: “Wie is al hierdie mense met die deftige wit klere aan? Waar kom hulle vandaan?” Ek sê toe: “Hoe sal ek nou weet, Meneer. U is mos die een wat sulke dinge weet.” Toe sê hy vir my: “Hierdie mense het baie swaargekry en is vreeslik vervolg. Maar hulle klere is nou weer mooi skoon gewas. Daar is nie ’n merkie of ’n vlekkie op nie, want hulle het dit in die bloed van die Lam gewas. Dit is waarom hulle nou hier voor God staan. “Sonder ophou, dagin en daguit, dien hulle God in sy blyplek. Net so sal God, die Heerser, self by hulle bly en na hulle kyk. Hulle sal nooit weer honger of dors word nie en die hitte en koue sal nie vir hulle ondraaglik word nie. Daarvoor sal God sorg. Ja, die Lam, wat oor almal heers, sal persoonlik vir hulle sorg. Hy sal vir hulle alles gee wat nodig is om vir ewig te leef. En God sal sorg dat hulle nie meer hartseer sal wees of pyn sal ken nie.” Toe maak die Lam die sewende seël oop. ’n Halfuur lank was dit doodstil in die hemel. Toe val my oog op sewe engele wat voor God staan. God gee toe vir hulle elkeen ’n trompet. ’n Ander engel verskyn toe ook op die toneel. Hierdie engel het ’n goue bak vasgehou en by die altaar gaan staan. ’n Klomp wierook, wat baie lekker ruik, is vir die engel gegee. Dit is saam met die gebede van al God se mense op die goue altaar gesit. Die altaar het reg voor God gestaan. Die heerlikste geur van die wierook het saam met die gebede van God se mense die ruimte by God gevul. Dit het uit die mengsel gekom wat die engel met sy hande gemaak het. Die engel maak toe die bak vol met brandende kole van die altaar af. Hy keer dit toe op die aarde om met merkwaardige gevolg. Blitse het geslaan, die donder het gedreun, mense het geskree en die aarde het gebewe. Nadat die sewe engele hulle trompette reggekry het, het die eerste een op sy trompet geblaas. ’n Reënbui van hael en vuur, gemeng met bloed, het losgebars. Vure het oral uitgebreek. In die woeste brand is ’n derde van die aarde afgebrand. Daar het nie ’n grashalmpie oorgebly nie en ’n derde van die woude het in die slag gebly. Toe blaas die tweede engel op sy trompet. Ek het ’n groot berg vlamme gesien. Dit is in die see gegooi. Dit was vernietigend. ’n Derde van die see het in bloed verander. Dit is nie al nie. ’n Derde van die seediere het ook gevrek en ’n derde van die skepe het gesink. Die derde engel blaas toe op sy trompet. Daarna val ’n groot ster van bo af. Dit het soos ’n fakkel gebrand. Die ster, met die naam “Bitterheid”, val toe reg op ’n derde van die riviere en op die fonteine. ’n Derde van die water het so bitter soos gal geword. Baie mense is van die giftige water dood. Die vierde engel blaas toe op sy trompet. ’n Derde van die son, maan en sterre word toe getref. Die gevolg was dat die sonlig ’n derde minder was en die maan ook ’n derde swakker geskyn het. Ek kyk toe mooi. Bo in die lug sien ek ’n arend sweef. Die arend skree toe hard sodat almal kan hoor: “Verdoemend, ja, vernietigend, verskriklik! Die arme mense op aarde. Ek kry hulle jammer as die laaste drie engele op hulle trompette blaas.” Die vyfde engel se trompet weerklink toe. Juis toe val my oog op iemand wat soos ’n ster van bo af op die aarde afkom. Hy het die sleutel gekry wat die ingang na die onder-aardse dieptes oop- en toesluit. Toe hy die ingang oopsluit, borrel daar ’n digte rookmassa uit hierdie onderaardse diepte uit. Die rookmassa was so dik dat die lug heeltemal swart geword het, sodat ’n mens nie eens die son kon sien nie. Uit hierdie wolke rook kruip daar toe sprinkane uit, die wêreld vol! Aan die sprinkane is buitengewone mag gegee. Hulle was gevaarlik soos skerpioene. Daar is mooi vir hulle gesê wat hulle moes doen. Die plante, bome en gras moes hulle met rus laat, maar die mense moes hulle tref, hoewel nie almal nie. Daardie mense wat die merk van God op hulle voorkop gehad het, was veilig, maar die mense sonder daardie merk moes deurloop. Die sprinkane moes nie die mense doodmaak nie, maar net vyf maande lank seermaak. Dit sal wees soos skerpioene wat hulle die hele tyd steek en dít gaan so seer wees dat die mense allerhande planne sal maak om hulleself dood te maak. Maar hulle planne sal nie uitwerk nie. Hoe hard hulle ook al probeer, die dood sal soos wind deur hulle grypende vingers glip. Die sprinkane het soos perde gelyk wat spesiaal vir oorlog reggemaak is. Hulle gesigte het soos dié van mense gelyk. Op hulle koppe was iets wat gelyk het soos die goue kroon wat mense kry wat ’n kompetisie gewen het. Onder die kroon het ’n pragtige haardos uitgehang, soos ’n vrou s’n. Hulle tande het soos leeus s’n gelyk. Ysterplate het hulle bors beskerm. Hulle het ’n groot lawaai gemaak, net soos die gedreun van ’n massa perde en waens wat in ’n oorlog instorm. Hulle sterte het nes dié van skerpioene gelyk, en kón dit steek! Vyf maande aanmekaar moes die mense onder daardie sterte deurloop. Glo my, dit was seer! Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes. Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad. Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.” Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak. Hulle was nie alleen nie. Hulle het ’n massa soldate op perde gehad. Ek het ook gehoor hoe baie daar was: twee maal 10 000 en dit nog weer met 10 000 vermenigvuldig. Ek kon die perde en hulle ruiters duidelik in ’n gesig voor my sien. Elke ruiter het ysterplate oor sy bors en maag gedra, reg vir oorlog. Die plate het soos vuur gelyk met blou en geel vlekke. Elke perd se kop het gelyk soos dié van ’n leeu wat alles wil verskeur. Vuur met rook en swaelwolke het uit hulle monde geborrel. Alles voor hulle is verskroei, saam met ’n derde van die mense op die aarde. Kyk, hierdie perde het nie met hulle laat speel nie! Hulle was baie sterk. Hulle krag het veral in hulle sterte gelê en in hulle monde wat so vuur spoeg. Hulle sterte was soos slange met die verskriklikste koppe. Waar hulle jou raak pik, is daar ’n gapende wond. Die mense wat hierdie plae oorleef het, het jou werklikwaar niks daaruit geleer nie. Hulle het maar net so verkeerd en sondig bly leef. Hulle het hulle nie aan God gesteur nie en glad nie belanggestel om Hom te begin dien nie. Hulle het maar aangehou om allerhande demone te aanbid. Hulle het vir hulle beelde van goud of brons gemaak. As hulle nie goud of sulke dinge gehad het nie, het hulle dit van klip of hout gemaak. Hierdie dooie beelde wat nie eens kon sien of hoor of praat nie, het hulle dan vurig aanbid. Daar was by hulle geen teken te bespeur dat hulle enige plan het om God te dien nie. Hulle het maar met hulle moord en toordery, hulle swak seksuele gedrag en agterbakse bedrog aangegaan asof niks gebeur het nie. Toe ek weer sien, kom daar ’n engel uit die hemel. Dié engel was nou vir jou sterk. ’n Mens kon die engel nie so mooi sien nie, want hy het in ’n wolk gestaan met ’n reënboog bo-oor sy kop. Hy was sterk en getrou ook. As jy na sy gesig gekyk het, was dit net of ’n mens reg in die son inkyk. Sy bene het gelyk soos pilare van vuur. In sy hand het hy ’n klein boekie gehou wat oop was. Hy gaan toe wydsbeen met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die land staan en skreeu kliphard. Dit het geklink soos ’n leeu wat brul. Hy het skaars geskreeu of sewe donderslae klap. Uit die hemel is daar gepraat! Met die donder wat so slaan, vat ek toe my pen. Ek wou neerskryf wat ek alles om my hoor. Net toe ek wou begin skryf, hoor ek iemand uit die hemel sê: “Moenie ’n woord neerskryf nie! Hou dit wat jy so deur die donder hoor, geheim.” Die engel wat so wydsbeen op die land en die see staan, lig toe sy regterhand op. Hy wys hemel toe en neem ’n eed. Hy roep toe vir God wat vir ewig en altyd leef en alles gemaak het - of dit die hemel met alles daarin, die aarde met alles daarop of die see met alles daarin is - as getuie in vir wat hy wil sê: “Daar is nie meer tyd oor nie. Die oomblik dat die sewende engel op sy trompet blaas, gaan God doen wat Hy beloof het. Hy het mos lank terug vir die mense wat Hom dien, die profete, gesê wat Hy van plan is om te doen.” Ek het toe weer dieselfde stem as netnou uit die hemel met my hoor praat: “Gaan vat daardie oop boekie uit die hand van die engel wat met die een voet op die see en die ander voet op die land staan.” Ek stap toe nader na die engel toe: “Gee my asseblief die boekie,” vra ek. “Vat en eet dit,” sê die engel. “As jy dit eet, sal dit lekker wees, soet soos heuning. Maar dan sal jy vreeslik sooibrand daarvan kry.” Ek vat toe die boekie by die engel en eet dit. Dit was toe so: in my mond was dit suikersoet. Nadat ek dit geëet het, het ek vreeslik sooibrand gekry. Weer praat hy met my: “Jy moet mense weer van God gaan vertel. Gaan na al die mense toe; maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie.” God gee toe vir my ’n liniaal. “Staan op. Gaan meet die tempel van God, altaar en al. Tel die mense wat besig is om God te aanbid. Skryf dit neer sodat daar presies onthou sal word hoe dit gelyk het. Moenie die plein buite die tempel meet nie. Los dit maar. Dit gaan vir al die ongelowiges wat God nie dien nie, gegee word. Niemand sal dit onthou nie. Hulle gaan hier in die heilige stad instroom en alles vertrap. Dit gaan darem net ’n beperkte tyd van 42 maande wees. “Intussen sal Ek twee mense stuur wat die waarheid oor My praat. Hulle sal eenvoudig aantrek soos die profete van ouds wat die volk op die regte pad wou hou. Hulle sal 1 260 dae lank (42 maande) vir die mense van My vertel. Dit is darem nie te lank nie.” Hulle kan vergelyk word met twee olyfbome en twee kandelare. Die olyfbome gee die olie sodat die kandelare altyd kan brand: dit laat ’n mens dink aan hoe die Gees werk. Hulle staan voor God wat oor die hele aarde heers. As iemand hulle probeer seermaak of benadeel, kom daar vuur uit hulle monde uit. Die vuur verskroei natuurlik al wat vyand is, net soos in Elia se tyd. So word hulle vyande vernietig. Hulle kan ook keer dat daar ’n druppel reën val solank hulle die mense van God vertel. Soos Moses van ouds kan hulle die water oral ondrinkbaar maak. Hulle verander dit in bloed. Hulle kan ook - as hulle natuurlik wil - die aarde en die mense met allerhande plae tref. Hulle sal van God preek tot God besluit dit is genoeg. Dan sal ’n oorlog teen hulle losbrand. Die bose dier sal uit die bodemlose onderaardse diepte uitkom en woes teen hulle veg en wen. Hy sal hulle doodmaak en die lyke net daar in die strate van die groot stad Jerusalem laat lê. Niemand sal dit eens begrawe nie. Dis mos ’n skande! Hierdie stad is net so boos soos Sodom van ouds. Soos mense destyds in Egipte onderdruk en sleg behandel is, doen hulle dit nou hier in Jerusalem ook. Ja-nee, dit is mos die einste stad waarin hulle Here ook aan die kruis doodgemaak is. Mense van oral af sal die lyke daar in die straat bekyk. Hulle wou die lyke mos nie begrawe soos dit hoort nie. Dit sal drie en ’n halwe dae so aanhou. Wat nog erger is, is dat daar feeste sal uitbreek. Mense oor die hele wêreld kan hulle blydskap nie in toom hou nie! Hulle gee vir mekaar geskenke, die ene vrolikheid! Die rede vir al die opgewondenheid is die lyke in die straat. Daardie boodskappers van God het immers die mense se gewete baie omgekrap en hulle skuldig laat voel. Drie en ’n halwe dae het verbygegaan. Toe gryp God in en gee die asem wat lewe gee vir hulle terug. Die twee boodskappers van God kom toe weer regop. Die mense wat dit gesien het, het hulle asem weggeskrik. Hulle het soos riete gebewe, so bang was hulle. Iemand uit die hemel praat toe helder en duidelik met die twee boodskappers van God: “Kom hiernatoe.” Voor die oë van hulle vyande is die twee boodskappers in ’n wolk na God toe. Toe begin die hele aarde geweldig skud. ’n Tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense is in die aardbewing dood. Die mense wat in die stad oorgebly het, was paniekbevange. Hulle het daar en dan vir God grootgemaak en alle eer aan Hom gegee. Die tweede verskrikking was nou verby. Maar oppas! Die derde verskrikking is op pad, en vinnig ook! Toe blaas die sewende engel op sy trompet. ’n Geweldig harde stem uit die hemel sê toe: “Ons Here en sy Messias regeer nou oor die wêreld. Almal weet dit! Hy sal vir ewig en altyd bly regeer.” Die 24 leiers van die kerk (wat op die trone in die hemel gesit het) het eenvoudig voor God neergeval en Hom aanbid: “Here God, vir wie anders kan ons dankie sê as maar net vir U? Niemand is so sterk soos U en kan doen wat U doen nie. U is nou daar soos U nog altyd daar was. U gebruik die groot krag wat U het en U regeer. “Mense wat U nie dien nie probeer uit woede teen U wal gooi. Dit is tevergeefs, want U gaan hulle hulle verdiende straf gee. Die tyd het gekom om almal wat al dood is deur God se oordeel te laat toets. Ja, die tyd vir God se groot prysuitdeling is op hande: die mense wat Hom getrou gedien het, sal Hy beloon. Sy boodskappers en al die ander mense wat aan Hom behoort, sal nie oorgesien word nie. “Of iemand nou belangrik of onbelangrik is, as hy God as God erken en gerespekteer het, nooi God hom na sy prysuitdeling uit. “Die tyd is ook daar dat God die mense sal vernietig wat in hulle eie lewe net ’n pad van vernietiging agtergelaat het.” Toe skuif die deure van God se tempel in die hemel oop. Die ark, wat die teken van God se ooreenkoms met sy mense is en waar God spesiaal teenwoordig is, het in die tempel gestaan, oop en bloot vir almal om te sien. Weerligstrale het geslaan en die donder het gedreun. Groot haelstene het geval en die aarde het gebewe. In die hemel sien ek toe iets gebeur waaruit ons ’n belangrike les kan leer. Ek het ’n vrou gesien. Haar klere was so helder soos die son self en sy het op die maan gestaan, so belangrik was sy. Op haar kop was ’n kroon wat net mense kry wat wen en nie verloor nie. Die kroon was van twaalf sterre gemaak. Sy het ’n baba verwag. Omdat sy op die punt was om die baba te kry, het sy van die pyn geskree. Maar dit was nie al nie. Ek sien toe ’n groot draak in die lug met ’n bloeddorstige rooi kleur. Hy het sewe koppe en tien horings gehad. Op elke kop was daar ook ’n kroon soos ’n koning sou dra. Dit was duidelik dat hierdie draak sterk was en dat baie aardse leiers agter hom aangeloop het. Hy was vernietigend. Hy swaai sy stert en slaan ’n derde van die sterre uit die hemel uit dat hulle tot op die aarde val. Die draak het reg voor die vrou gaan staan om die kind te verslind wat sy besig was om te kry. Die kind word toe gebore. Dit was ’n seun, maar nie sommer enige seun nie. Hy is die Een wat oor al die mense in hierdie wêreld sal regeer. Wie nie na Hom luister nie, sal onder sy verskriklike straf deurloop. Die draak was te stadig. Toe die Seun gebore is, is Hy opgeraap en na God toe, wat oor alles heers, gevat. Die vrou het die woestyn in gevlug waar God vir haar ’n spesiale plek reggemaak het. Sy het so lank as wat dit nodig was (omtrent so 1 260 dae) daar gebly. God het vir haar alles gegee wat sy nodig gehad het. Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs. Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt. Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees. Sy ander name is duiwel en Satan. Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei. Juis hy is saam met sy engele uit die hemel gegooi. Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor: “Nou het God ons gered. Nou het Hy sy krag bewys. Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag. “Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hulle foute aangekla het, is uit die hemel uitgegooi. Ja, hy het God se mense mos sonder ophou, dag en nag, voor God beskuldig. Hulle het hom behoorlik gewen. Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hulle met soveel oortuiging aan ander vertel het. Alles het nie net vir hulle om hulleself gedraai nie. Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg. Daarom moet almal wat in die hemel bly van blydskap oorloop. Maar, o genugtig, arme aarde en arme see! Julle gaan swaarkry! Weet julle hoekom? Die duiwel het na julle toe afgekom. Hy is buite homself van woede. Maar sy tydjie is min en hy weet dit!” Toe die draak tot verhaal kom en agterkom dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou verwoed agternagesit. (Dit is die vrou wat die seun gehad het.) God gee toe vir die vrou twee vlerke sodat sy soos ’n groot arend kon vlieg. Sy het toe die woestyn in gevlieg na die plek toe wat spesiaal vir haar reggemaak is. Daar is sy versorg met alles wat sy nodig gehad het so lank as wat sy dit nodig gehad het, en dit was nie te lank nie. Daar was sy buite die bereik van die duiwel. Toe maak die duiwel ’n ander plan. Hy laat uit sy mond ’n geweldige stroom water kom. Soos ’n bruisende rivier is hierdie water agter die vrou aan. Die draak het gehoop om so die vrou te verswelg. Maar die aarde was daar om haar te help. Die aarde het oopgeskeur en die water het in die skeur verdwyn. Dit het die draak nog kwater gemaak. Hy was blind van woede vir die vrou. Hy is toe daar weg en het begin oorlog maak en baklei teen al wat kinders van die vrou is. Hy het dadelik begin oorlog maak teen almal wat gehoorsaam aan God se wil is of wat openlik en met oortuiging van Jesus praat. Die draak het toe by die see op die strand gaan staan. Ek sien toe ’n dier uit die see opkom. Hy het so gelyk: hy het tien horings en sewe koppe gehad, wat gewys het hoe ’n sterk regeerder hy was. Sy tien krone het gewys dat hy soos ’n koning regeer het. Op die koppe was die verskriklikste naam geskryf. Dit was ’n absolute belediging vir God! Hy kon nie sy sluheid wegsteek nie, want hy het die lyf van ’n luiperd gehad en sy pote het soos ’n beer s’n gelyk. Daarmee het hy vasgestaan. Sy bek was soos ’n leeu s’n, wreed en vreesaanjaend. Die duiwel het aan hierdie dier sy krag gegee. Hy kon met net soveel gesag as die duiwel regeer. Een van die koppe van die dier het ’n wond gehad waarvan hy sekerlik moes doodgaan. Met so ’n wond kon hy nie bly leef nie. Tog het die wond gesond geword. Die hele wêreld was verwonderd, stom van verbasing. Hulle het agter die dier aangestroom en die duiwel soos God aanbid, want hy het mos al daardie mag aan die dier gegee. “Wie is so wonderlik soos die dier?” het hulle gevra. “Wie sal ooit teen hom ’n oorlog kan wen?” So het hulle die dier aanbid. God het die dier toegelaat om so ’n grootmond te wees en Hom te beledig. God het hierdie kragtoertjies van die duiwel vir ’n rukkie geduld; dit was darem nie te lank nie. Die dier het vreeslik te kere gegaan. Hy het God op alle moontlike maniere beledig en sy karakter geskend. Selfs die wesens wat in die hemel saam met God bly, moes onder sy tong deurloop. God het die dier ook nie gekeer om teen God se mense oorlog te maak en hulle selfs te wen nie. God het hom ook toegelaat om die septer te swaai oor die hele wêreld, maak nie saak waar nie. Al die mense wêreldwyd en van oraloor het die dier aanbid asof hy God of Christus self is. As ek hier sê “al die mense”, is dit natuurlik almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is Christus, die Lam met die slagmerk aan sy keel, se boek. Die name staan al in daardie boek vandat die wêreld gemaak is. As iemand twee ore het, moet hy hierna luister: “As dit op iemand se pad lê om in die tronk te beland, sal hy in die tronk beland. Iemand wat iemand anders doodmaak, sal self doodgemaak word.” Ja-nee, die mense wat aan God behoort, moenie moed opgee nie. Hulle moet gelowig op God bly vertrou. Ek het toe nog ’n dier gesien. Hy het uit die aarde opgekom. Hierdie dier het nie gevaarlik gelyk nie, net soos ’n lammetjie met twee horinkies. Toe die dier egter sy mond oopmaak om te praat, was dit die ene duiwel, van voor tot agter. Hierdie dier kon alles doen wat die eerste dier gedoen het. Hulle het saamgewerk. Die tweede dier het net een doel gehad: hy wou sorg dat al die mense op die aarde die eerste dier - dit is nou die een met die dodelike wond wat gesond geword het - soos ’n god aanbid. Hy het die wonderlikste dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hy het selfs vuurvlamme uit die hemel op die aarde laat reën. Hy het natuurlik gesorg dat almal dit sien. Onnodig om te sê, maar hy het die mense met al hierdie wonderlike dinge die regte pad heeltemal byster laat raak. Hy het hulle selfs oortuig om vir die eerste dier (wat met die swaard gewond is, maar nog springlewendig is) ’n standbeeld te bou om hom só as ’n groot heerser te eer. God het selfs toegelaat dat die beeld begin asemhaal en praat, soos die tweede dier wou. Die ergste is dat hierdie standbeeld enigiemand wat nie voor hom neerval en hom soos ’n god aanbid nie, daar en dan doodgemaak het. Hy het ook almal forseer om ’n merk op hulle regterhand en voor op hulle kop te dra. Aan die merk sou almal kon sien dat hulle aan die dier behoort. Niemand het dit vrygespring nie; of jy nou belangrik was of nie, ryk of arm; ja, letterlik niemand nie, nie eens die eenvoudigste werker of die belangrikste baas nie. Almal moes daardie merk dra. Niemand kon enigiets koop of selfs iets verkoop as hy nie die merk gehad het nie; dit wil sê, die naam van die dier of die kodenommer van sy naam. Hier is ’n raaisel vir die slimmes. Laat iemand wat slim genoeg is, uitwerk wat hierdie kodenommer van die dier wil sê. Dit is die kodenommer van ’n mens, naamlik 666. Ek kyk toe weer mooi, en wat sien ek? Op die heilige berg Sion het Jesus, die Lam, gestaan en by Hom was 144 000 mense. Elkeen van hulle het die Naam van die Lam en die Naam van sy Vader duidelik op hulle voorkoppe geskryf gehad. Ek het toe iemand uit die hemel hoor praat. Dit het geklink soos ’n geweldige donderstorm met water wat neergiet. Maar die stem het tegelyk soos pragtige musiek geklink. Al hierdie mense het die pragtigste lied gesing wat niemand nog ooit gehoor het nie. Voor God op sy troon en die vier lewende wesens en die kerkleiers het die lied opgeklink. Snaaks genoeg kon niemand anders hierdie lied aanleer of sing nie. Dit was spesiaal net vir die 144 000. God het hulle mos vrygekoop van dit wat hulle op die aarde gebind het. Hierdie mans het nie onsedelik saam met vroue geleef nie. Hulle is rein. Hulle het die Lam gevolg net waar Hy gegaan het. God het hulle eerste uit al die mense sy eiendom gemaak. Hulle is die eerstes van nog baie ander wat aan God en die Lam gaan behoort. Hulle het ook nooit vir enigiemand gelieg nie. Teen hulle is daar niks te sê nie. Toe sien ek nog ’n ander engel wat bo my tussen die wolke vlieg. Die engel het oorgeloop van die goeie nuus van God en wou dit vir almal vertel. Dit is die nuus wat vir ewig en altyd goed sal bly. Die engel moes sorg dat al die mense op die aarde dit hoor, maak nie saak wie dit is of waar hulle bly nie. Daarom het die engel hard geskree sodat almal dit kon hoor: “Betoon respek vir God, want vir Hom moet julle ontsag hê. “Maak Hom groot, want die tyd is hier dat mense voor God gaan verskyn om te hoor wat sy oordeel oor hulle is. “Aanbid Hom! Hy het die hemel gemaak. Die aarde met die see en fonteine het Hy met sy hande gemaak.” Dit was skaars verby of ’n tweede engel was daar: “Dit is klaarpraat met Babilon, die stad vol sondige mense; ja, die grote Babilon is verby! Sy wou mos al die mense forseer om soos sy te leef asof God nie bestaan nie. So, sonder God, het hulle geleef soos mense wat hulle dronk drink.” ’n Derde engel kom toe en skreeu net so hard: “As iemand die dier met sy standbeeld aanbid en die dier se merk op sy voorkop of hand dra, sal hy ’n ander soort wyn drink; die wyn van God se straf. God se woede en ontevredenheid sal wees soos ’n glas wat vol wyn gegooi word. Die mense wat aan die dier behoort, sal dit dan moet drink, of hulle wil of nie! Dit sal wees soos iemand wat in ’n verskriklike warm vuur baie seer brand. Die engele en die Lam sal staan en kyk hoe dit gebeur. Die vuur se rook sal wys hoe seer hierdie mense brand. En dit sal nooit einde kry nie. Die arme mense wat die dier aanbid en met hom gespog het deur sy merk te dra, gaan baie swaarkry. Hulle sal dag en nag die ondraaglikste pyn moet verduur. “Die mense wat aan God behoort, moet net vasbyt. Hulle moet op die regte pad bly. Hulle moet gehoorsaam doen wat God van hulle verwag en aan Jesus Christus getrou bly.” Toe hoor ek ’n stem uit die hemel: “Skryf! Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar! sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes. God self weet dit baie goed.” ’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het. Skielik het ’n ander engel sy opwagting gemaak. Die engel het uit die blyplek van God gekom en hard geskree vir die Man wat op die wolk sit om te hoor: “Steek u sekel in. Maak die oes bymekaar. Die oestyd is hier, want die oes op die aarde is ryp.” (Natuurlik het die engel van die oordeel gepraat.) Die Man op die wolk maak toe so. Hy het sy sekel ingesteek en die hele aarde afgeoes. En nog ’n engel het uit die blyplek van God in die hemel verskyn. Hy het ook so ’n skerp sekel gehad. Skielik was daar nog een wat uit die rigting van God se altaar gekom het. Hy was in beheer van die vuur. Hy skree toe hard vir die engel met die sekel sodat almal kon hoor: “Steek jy ook jou sekel in! Sny die druiwetrosse van die wingerde op aarde af. Die druiwe is ryp.” (So begin die oordeel.) Die engel het nie op hom laat wag nie en het op die aarde begin oes. Wat geoes is, is saam in ’n groot houer gegooi. In hierdie houer is die druiwe stukkend getrap. Hierdie houer kan vergelyk word met die woede en straf van God oor die sonde. So vreeslik was dit dat dit nie in die stad waar die mense gebly het, gedoen is nie. Die bloed het oor die houer gestroom. Die stroom bloed was so diep dat dit tot by die middellyf van ’n man gekom het. Hierdie stroom bloed het 300 kilometer ver geloop. Ek sien toe nog ’n ander teken in die hemel waaruit ons baie kan leer. Dit was ’n groot en asemrowende toneel. Ek het sewe engele gesien met sewe rampe. Dit is die laaste rampe wat die mense sal tref. Dit rond God se woede oor die sondes af. Ek sien toe iets wat lyk soos ’n see van glas wat in vuur brand met ’n klomp mense wat langs die see staan. In hulle hande was musiekinstrumente van God. Dit was al die mense wat enduit volgehou het in die stryd teen die dier en sy beeld en die kodenommer van sy naam en wat uiteindelik gewen het. Hulle het Moses se lied gesing. Moses het God mos gedien. Hierdie lied is ook die lied van die Lam: “Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal! Wat U doen, is altyd reg en regverdig. U doen dinge soos dit hoort. U heers oor al die mense van die wêreld en hulle sal dit moet erken. “Here, wie sal U nie met groot agting en respek hanteer nie? Wie sal nie vir ander vertel hoe belangrik U regtig is nie? U en U alleen is soos U is: heilig. Al die mense sal na U toe stroom en U as God aanbid. Hulle kan nou sien dat wat U doen, regverdig is.” Na hierdie pragtige lied het iets anders my aandag getrek. Daar was ’n tent in die hemel waarin God vroeër op ’n spesiale manier by sy mense was. Die tent se ingang het oopgegaan. Daar het sewe engele uit die tent uitgestap met sewe rampe. Hulle het duur, mooi klere aangehad. Die klere was van suiwer, spierwit linne gemaak. Elkeen het ook ’n breë, goue gordel aangehad. Een van die vier lewende wesens wat om God se troon gestaan het, gee toe vir elke engel ’n goue bak. Hierdie sewe bakke was propvol van die woede en straf van God, die God wat vir ewig en altyd leef. God se woonplek, sy tempel, het gelyk of dit vol rook was. Eintlik was dit die verbysterende grootheid en krag van God waarvan dit oorgeloop het. Niemand kon toe in die tempel ingaan nie. Hulle moes eers wag tot die sewe rampe van die sewe engele klaar was. Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.” Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het. Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood. Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander. Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak. Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!” Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.” Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm. Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie. Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou. Hulle het die God van die hemel gevloek en sleggesê oor hulle pyn en hulle sere. Tog wou hulle nie ophou om verkeerde dinge te doen nie. Hulle wou nie reg begin lewe soos God dit wil hê nie. Toe slaan die sesde engel toe. Sy bak se inhoud beland op die Eufraatrivier. Dit was ’n groot, magtige rivier, maar elke druppel water het opgedroog. Nou kon die konings uit die ooste sonder moeite deur die rivier kom. Toe sien ek die duiwel, die draak, staan saam met die dier en dié een wat voorgee om almal van God te vertel, maar die hele tyd lieg. Hulle maak hulle monde oop, en daar kruip drie bose geeste uit. Hulle het net soos paddas gelyk. Hierdie geeste het reguit van die duiwel af gekom en vir hom gewerk. Hulle het allerhande dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hulle is na al die leiers en konings toe. Hulle het nie een oorgeslaan nie, maar almal omgepraat om saam met hulle te kom oorlog maak teen God. Maar dié dag wanneer hulle God gaan aandurf, sal in die geskiedenis uitstaan as ’n geweldig belangrike dag. Dit gaan God se dag wees, want Hy is sterker as almal saam. (Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n - as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”) Die duiwel en sy helpers het al die leiers van die wêreld saamgetrek by ’n plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Net toe strooi die sewende engel sy bak in die lug uit. Uit die rigting van die troon in God se woonplek, sy tempel, hoor ek toe ’n harde geskree: “Alles is klaar; dit is verby!” Toe begin die hele aarde ruk en bewe soos nooit tevore nie. Die blitse het geslaan en die dreuning van die donder was verskriklik. Met die groot aardbewing is die belangrikste stad, Babilon, met al die bose mense in stukke geruk. Dit het in drie gebreek. Van die stede en mense wat God nie gedien het nie, het niks oorgebly nie. Ja, so sal dit gaan. God vergeet nie wat die klomp slegte mense van Babilon alles teen Hom gedoen het nie. Hulle sal moet betaal, daarvoor sal God sorg. Elke stukkie van God se straf en woede sal Babilon tref. So verskriklik sal dit wees dat eilande sal verdwyn en berge sal platval. Hael so groot soos rotse sal uit die hemel op die mense neerreën. Wat ’n verskriklike ramp gaan dit nie wees nie! Mense gaan God daaroor beledig en vloek. Een van die sewe engele met die bakke kom praat toe met my: “Kom saam. Ek wil jou gaan wys hoe God die groot en belangrike stad Babilon met haar bose inwoners gaan straf. Ek praat van die stad wat haar rug vir God gedraai het soos ’n onsedelike vrou haar rug vir haar man draai. Dit is die stad wat oor baie water gebou is. In plaas daarvan om aan God getrou te wees, het die stad na die belangrike leiers van die wêreld gevry. Dit het die mense oor die hele wêreld so bedwelm soos te veel wyn ’n mens bedwelm. Net soos die stad het hierdie mense ook nie belanggestel om God te dien nie. Hulle het eerder gedoen wat die stad wou hê.” Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk. Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik. Sy het ook ’n naam gehad wat op haar voorkop geskryf was. Dit het ’n geheime betekenis gehad. Daar het gestaan: “Babilon, die groot en beroemde stad. Die moeder van alle mense wat hulle rug vir God draai en hulle met die vieslikhede van hierdie wêreld besig hou.” Ek het mooi gekyk en gesien dat die vrou dronk was. Ja, sy was dronk van al die bloed van God se mense en die mense wat doodgemaak is omdat hulle Jesus Christus gedien het. My mond het oopgehang toe ek haar sien. Ek kon my oë nie glo nie! Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra. Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie. “Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders. Vyf van hulle was al klaar daar. Die sesde een regeer nou. Die sewende een is nog op pad. Hy sal nie lank regeer nie. Dan is daar die dier wat in die verlede daar was, maar nou van die toneel verdwyn het. Hy is deel van sy sewe voorgangers, maar is tegelyk die agtste regeerder. Hy is op pad om sy moses teë te kom. Hy gaan vernietig word. “Die tien horings wat jy gesien het, is die tien regeerders wat nog nie begin regeer het nie. Hulle sal saam met die dier ’n uur lank soos konings kan regeer. Al tien het net een doel voor oë: hulle wil al hulle mag en invloed vir die dier gee. Hulle sal saam oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle ’n goeie pak slae gee. Die Lam is die regeerder van al die regeerders. Al sy mense kan weet dat Hy hulle spesiaal na Hom toe geroep het. Hulle is spesiaal gekies en het aan Hom getrou gebly.” Die engel sê toe verder: “Die baie water wat jy gesien het, waaroor die slegte vrou sit, moet vergelyk word met al die mense van die wêreld. Dit maak nie saak waar hulle vandaan kom, hoe hulle lyk of watter taal hulle praat nie. Die tien horings (dit is mos die tien regeerders) wat jy gesien het en die rooi dier sal niks vir die slegte vrou voel nie. Hulle sal haar molesteer en sonder ’n draad klere aan laat lê. Dan sal hulle haar met hulle tande uitmekaarskeur en opeet. Wat oorbly, sal hulle met vuur verbrand. God self het daarvoor gesorg dat die regeerders op die idee gekom het om hulle mag vir die dier te gee. Hulle het presies gedoen wat God wou gehad het. So sal dit aangaan tot alles wat God gesê het, presies gebeur het. Die vrou wat jy gesien het, is die groot en belangrike stad wat oor al die heersers van die wêreld getroon en geheers het.” Toe dit alles verby was, sien ek ’n ander engel uit die hemel afkom. Dit was ’n baie sterk engel. Die aarde het sommerso geblink van die helder glans van die engel. Hy het ’n verskriklik harde stem gehad. Hy skree toe: “Dit is verby met daardie belangrike stad Babilon. Sy word met die grond gelykgemaak. Dit het ’n spookdorp geword, vol demone. Oral het bose geeste hulle intrek geneem. Allerhande vieslike vlieënde goed het daar kom nes maak. Diere waarvan God niks hou nie, het daar opgedaag. Al hierdie goed is regtig vieslik en haatlik! Al die mense van die aarde kon nie genoeg kry van haar verraad teen God nie. Hulle het dit soos wyn opgeslurp. Die regeerders, wat hulle mense moes lei, het die stad eerder gedien as vir God. Die sakemanne het miljoene gemaak uit haar lewe vol vieslikhede.” Net toe hoor ek iemand anders uit die hemel praat: “My volk, sorg dat julle uit die stad wegkom; gee pad, sodat julle nie met al daardie slegte dinge deurmekaarraak nie. Ja, gee pad sodat al haar rampe julle nie ook tref nie. Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het. Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug. Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’ Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.” Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef. Hulle sal haar nie gaan help nie, maar net van ver af staan en kyk. Hulle is te bang hulle gaan net so swaarkry soos sy. Hulle sal net sê: “Ag, genugtig; hoe jammer! Die groot, belangrike stad; die sterk stad Babilon! Ai, kyk net; in ’n enkele oomblik het jy reguit in God se straf vasgeloop!” Die besigheidsmanne van die wêreld is net so hartseer oor haar. Hulle huil net sulke lang trane. Niemand wil nou meer hulle goed koop nie. Al die goed wat mense eers so graag wou gehad het, lê nou in hope op die mark, want niemand wil dit meer hê nie. Daar lê goud, silwer, edelstene, pêrels; daar is die mooiste materiale, linne en sy. Daar is die mooiste kleure, pers en rooi. Die verskillende houtgoed is net so mooi. Die hout ruik lekker en sommige artikels is uit duur hout gemaak, en ivoor ook! Goed van brons, yster en marmer staan ook oral rond. Om nie eens te praat van al die duur kruie nie. Oral lê daar kaneel, speserye en verskillende kruie wat lekker ruik, soos mirre en wierook. Aan eetgoed is daar ook nie ’n tekort nie. Duur kos, olie, wyn, meel en koring is vrylik beskikbaar. Selfs diere soos beeste, skape en perde kan ’n mens daar kry en daar is tot perdekarre! Om nie eens te noem dat ’n mens selfs mense daar kan koop nie: ja, daar is selfs slawe beskikbaar. “Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!” Hierdie einste handelaars wat so ryk geword het uit die stad sal haar nie nou gaan help nie. Hulle sal net van ver af staan en kyk. Hulle is bang dat wat die stad tref, hulle ook gaan tref. Tog huil hulle kliphard: “Die arme, arme stad. Die groot, belangrike stad! Kyk net hoe het sy haar deftig opgetof met mooi pers en rooi klere. Kyk na al haar duur juwele: dis net pêrels en edelstene waar jy kyk! In ’n enkele oogwink sorg God dat daar van al hierdie rykdom en weelde niks oorbly nie.” Die skeepskapteins, matrose en almal wat iets met die see te doen het, het van ver af gestaan en kyk. Hulle het die rookwolke gesien wat van die stad af opgestyg het. Dit het hulle laat uitroep: “Wat ’n wonderlike stad was dit! Daar was nog nooit so iets nie!” Om te wys hoe hartseer hulle regtig was, het hulle stof oor hulle gegooi. So deur die trane en snikke het hulle gesê: “Hoe ellendig, hoe verskriklik is dit tog nie! Kyk na die magtige stad. Almal wat skepe op die see gehad het, het skatryk geword. Daarvoor het sy gesorg. En nou, met een veeg van sy hand, het God ’n einde aan alles gemaak.” In die hemel moet almal bly wees oor wat met die stad gebeur. Al God se mense, die mense wat Hy uitgestuur het om vir Hom te werk, hulle wat sy Woord moet verkondig, moet net so bly wees. God het haar immers gestraf oor wat sy aan hulle gedoen het. Daar kom toe ’n engel wat baie sterk was. Hy vat ’n groot rots en gooi dit in die see. Hy kondig toe aan: “So, soos hierdie rots, sal die groot stad Babilon met mening neergegooi word. Soos die rots sal dit vir ewig verdwyn. Daar sal net mooi niks oorbly nie, nie eens een musiekinstrument nie; nie eens ’n enkele ding wat iemand maak of bou nie; nie ’n korreltjie meel nie; ja, niks nie! Daar sal nie ’n lampie oorbly om iewers sy dowwe liggie te gooi nie, wat nog te sê van die vrolike gesels van twee pasgetroudes. Net mooi niks sal oorbly van Babilon nie, en sy was eens die een wat met al die belangrikste en rykste besigheidsmanne in die wêreld gespog het! Sy kon mense van oral af deur haar oëverblindery om die bos lei. Dit was ook die einste stad waarin die kinders van God en sy boodskappers doodgemaak is, ja, vermoor is!” Net hierna hoor ek uit die hemel ’n vreeslik harde lawaai. Dit het geklink soos ’n massa mense wat gelyk praat: “Halleluja, prys God! Ons God red ons, want Hy is sterker en belangriker as almal. Wat Hy besluit, is altyd regverdig en soos dit regtig moet wees. Hy het besluit om die goddelose vrou, Babilon, te straf. Sy het mos met haar goddeloosheid mense heeltemal deurmekaargekrap en mislei. God het haar dubbel en dwars terugbetaal vir elkeen wat sy doodgemaak het omdat hulle Hom gedien het.” Hulle het verder gesing: “Prys God, halleluja! Die rook van die smeulende stad trek vir ewig en altyd op.” Die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens het vol eer en respek voor God neergesak. Hy het op sy troon gesit. Hulle het uitgeroep: “Laat alles net so wees! Prys God!” Ek hoor toe nog ’n stem uit die rigting van die troon: “Laat lof vir ons God oor julle lippe rol! Laat elkeen wat Hom dien dit doen, klein en groot, elkeen wat ontsag vir Hom het!” Toe het ek weer ’n groot skare hoor skree. Dit het soos ’n geweldige storm geklink met donderslae en reën wat neergiet: “Halleluja, prys God! Daar is niks wat die Here, ons God, nie kan doen nie. Hy heers oor almal. “Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak. “God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.” En die engel sê toe vir my: “Skryf! Party mense is baie gelukkig. Dit is elkeen wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is. Daaraan hoef niemand te twyfel nie. Dit is absoluut waar, want God self sê dit.” Ek sak toe op my knieë voor die engel neer om hom te aanbid. Dadelik sê hy: “Moenie dit doen nie! Ek is, net soos jy, ook net iemand wat God dien. Ek is net een van jou broers wat met oortuiging vir ander van Jesus vertel. Nee, aanbid God! Die boodskap oor Jesus is die boodskap wat die Heilige Gees van God self vir ons bring.” Toe ek weer sien, vou die hemel voor my oop. In die hemel was daar ’n wit perd met ’n Ruiter. Die Ruiter is die Een wat jou nooit in die steek laat nie. Hy is opreg en eg in alles wat Hy doen en sê. Sy oordeel is ook altyd reg en wanneer Hy oorlog maak, is dit nie onregverdig nie. Sy oë was soos vuurvlamme wat alles sien. Sy kop was vol krone soos heersers dra. Hy het ook ’n Naam gedra wat niemand geken het nie. Net Hy self het geweet wat dit beteken. Sy klere was deurweek met bloed. Mense het van Hom gepraat as die “Woord van God”; die Een deur wie God sy wil bekendmaak. Die soldate van die hemel het op wit perde agter die Ruiter aangery. Hulle het nie oorlogsklere aangehad nie. Hulle het feesklere aangehad. Die klere was van die mooiste fyn, wit materiaal gemaak. Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars. Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word. My oog val toe op ’n engel wat so helder soos die son is. Hy het oorverdowend hard geskree. Hy het al die voëls geroep wat tussen die bome en wolke rondvlieg: “Kom hier! Kom saam vir die groot ete wat God vir julle voorberei! Kom vier fees op die liggame van regeerders, soldate, mense wat eers baie invloed gehad het. Ja, kom vreet die vleis van ruiters en perde. Of dit nou slawe of vry mense is, klein of groot, kom hou fees op hulle liggame.” Ek sien toe die dier en al die regeerders van hierdie wêreld met hulle soldate saamtrek. Hulle het hulle reggemaak om teen die Ruiter op die perd en sy soldate te veg. Die dier is toe gevang, hy en die een wat voorgee om oor God te praat, maar die hele tyd net lieg. Dit is die een wat al die wonderlike dinge saam met die dier gedoen en mense heeltemal mislei het. Ek praat van al daardie mense wat die merk van die dier op hulle laat maak en wat sy standbeeld aanbid het. Hierdie twee diere is net so lewendig in die see van vlamme gegooi. Die tonge van vuur was met swael gemeng. Die res is afgemaai met die swaard wat uit die mond van die Ruiter kom. Al die voëls het gekom en op hulle vleis geaas. Ek sien toe ’n engel wat uit die rigting van die hemel afkom. In sy hand het hy die sleutel van die bodemlose onderaardse diepte asook ’n ketting gehad. Hy gryp toe die draak - dit is die slang wat ons van die ou tyd af ken, die duiwel en Satan - en maak hom met die ketting vas. Toe boender die engel hom in die onderaardse diepte in en maak die ingang deeglik toe sodat niemand dit oop of toe kan maak nie. So sal dit 1 000 jaar lank bly. Die volle 1 000 jaar sal die draak nie meer die mense op die verkeerde pad kan lei nie. As die 1 000 jaar verby is, moet die draak ’n klein rukkie weer losgelaat word. Toe ek kyk, sien ek ’n klomp trone. Op die trone was mense vir wie God gesê het dat hulle maar namens Hom oor sondaars kan oordeel. Ek het ook die siele gesien van elke mens wie se kop afgekap is omdat hy met oortuiging oor Jesus en die boodskap van God gepraat het. Hulle het geweier om die dier of sy beeld soos God te aanbid. Hulle het ook nie die dier se teken op hulle voorkoppe of hande laat maak nie. Hulle almal het lewendig geword. Die volle 1 000 jaar het hulle saam met Jesus geheers. Dit is die eerste opstanding. Die res van die mense wat dood is, het eers na die 1 000 jaar lewendig geword. Hierdie mense wat so opstaan, is baie gelukkig. Hulle is God s’n. Die tweede dood sal hulle nie kan beetkry nie. Hulle sal vir ewig leef en God en Christus dien met alles wat hulle het. Saam met Jesus sal hulle 1 000 jaar lank oor alles heers. Wanneer die 1 000 jaar verby is, sal God Satan uit sy tronk laat kom. Satan sal skaars uit die tronk wees of hy sal al die mense, oor die hele wêreld, begin mislei. Hy sal hulle - dit is die Gog en die Magog - ompraat om saam te kom vir oorlog. Daar sal miljoene van hulle wees, so baie soos die sand van die see. Hulle sal oor ’n wye gebied optrek en die woonplek van God se mense, asook die stad wat God liefhet, omsingel. Maar daar sal vuur uit die hemel op hulle neerbrand en hulle verbrand. Die duiwel wat hulle so mislei het, sal in die see van vlamme en swael gegooi word. Dit is waar die dier en die vals profeet ook is. Dié drie sal daar dag en nag, sonder ophou, van die pyn krul. Voor my oë het ek ’n groot, wit troon sien staan. Ek het Iemand op die troon sien sit. Die hemel en die aarde het voor Hom probeer wegkom, maar daar was nie ’n plek waar hulle kon wegkruip nie. Toe sien ek iets anders. Mense wat reeds dood en begrawe was - klein en groot - het voor die troon gestaan. Boeke is toe oopgeslaan. ’n Boek is oopgemaak waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig sal lewe. Daarin is boekgehou van wat die mense alles gedoen het. God het besluit wat met elkeen gaan gebeur op grond van wat in die boek staan. Die mense wat in die see verdrink het, het lewendig geword. Al die mense, hoe hulle ook al dood is, het lewendig geword en voor die troon verskyn. Elkeen moes God se oordeel aanhoor, volgens hoe hy geleef het. Daarna het God die moontlikheid van die dood ook vernietig. Die dood en die doderyk self is in die see van vuurvlamme gegooi. Dit is die tweede dood: om in hierdie see van vlamme verskroei te word. Nou wie presies beland in hierdie vlamme? As jou naam nie in die boek staan waarin die name staan van die mense wat vir ewig sal leef nie, is die vlamme jou voorland! Ek sien toe ’n splinternuwe hemel en aarde. Die aarde, soos ons dit ken, het verdwyn en die hemel, soos ons dit ken, was nie meer daar nie. Ek sien toe ook hoe God sy stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel laat afkom. Die stad was pragtig, soos ’n bruid wat haar vir haar bruidegom mooigemaak het. Ek hoor toe ’n harde stem sê: “God bly nou by en tussen die mense; ja, Hy gaan saam met hulle bly. Hulle sal sy mense wees. Hy sal hulle God wees en by hulle wees. As daar trane oor hulle wange loop, sal God self dit afdroog. Niemand sal meer daar doodgaan nie. Niemand sal hartseer wees of pyn ken nie. Hierdie slegte dinge van voorheen sal vir ewig en altyd verby wees.” Die Een wat op die troon sit, sê toe: “Kyk mooi, Ek maak alles nuut!” Verder sê Hy: “Skryf dit neer. Hierdie woorde kan mense maar glo, want dit is waar! Wat Ek gesê het, het gebeur. Alles begin by My en Ek besluit waar alles gaan eindig. Ek is die begin en die einde. As iemand geestelik dors is, sal Ek vir hom sorg. Ek sal vir hom water gee wat ’n mens se geestelike dors les en hom vir ewig laat leef. Dit alles is gratis. Die persoon wat enduit as Christen volhou, sal soos ’n egte kind al hierdie dinge van My erf. Dit is my ooreenkoms. Ek sal vir hom God wees, en hy sal my kind wees. “Maar ’n see van brandende vlamme en swael wag vir ander mense: dit is daardie lafhartige mense wat nie na My luister nie. Hulle doen die vieslikste dinge. Hulle gee nie om om ander mense dood te maak nie. Hulle slaap rond en doen seksuele dinge wat ’n mens nie behoort te doen nie. Om nie eens te praat van hoe hulle afgode dien en soos towenaars allerhande geestelike magte vir hulle eie voordeel probeer manipuleer nie. Dit is ook hulle wat so lieg. Nou ja, vir hulle wag daar geen toekoms nie, net die tweede dood.” Een van die sewe engele kom toe nader (dit was een van die engele wat een van die sewe bakke met die laaste plae oor die aarde uitgegooi het). Hy sê vir my: “Kom, ek wil vir jou die bruid wys, die vrou met wie die Lam gaan trou.” Hy vat my toe in die gees na ’n massiewe, hoë berg toe. Daar wys hy my dit toe: die stad wat God s’n is, Jerusalem, daal voor my oë van die hemel af ondertoe. Dit kom van God self af, en dit kon ’n mens aan die stad self sien. Dit was so oorweldigend en wonderlik! Dit het geskitter soos die wonderlikste edelsteen, helder soos ’n diamant. Rondom die stad was ’n hoë, dik muur. Daar was twaalf poorte in die stad, drie na elke windrigting se kant toe. By elke poort het ’n engel gestaan. Die twaalf name van die stamme van Israel is op die poorte aangebring. Die dik stadsmuur is op twaalf fondamente gebou, met die name van die twaalf apostels van die Lam daarop. Die engel wat met my gepraat het, het ook ’n goue liniaal gehad. Dit was om die stad noukeurig op te meet; ja, die hele stad met sy poorte en mure. Die stad was vierkantig; dit was net so lank as wat dit breed was. Die engel het toe die stad gemeet. Dit was 12 000 kilometer lank. Sy breedte en hoogte was presies dieselfde. Hy het ook die hoogte van die muur gemeet. Dit het volgens menslike mate 144 meter hoog gestaan. Die muur was van die pragtigste edelgesteentes gebou. Die stad self was van die suiwerste goud. Dit het geblink en geskitter, byna asof ’n mens na glas kyk. [19-20] Die fondamente van die stadsmuur was die ene edelstene. Dit was oortrek met jaspis, saffiere, agaat, smarag, oniks, sardis, chrisoliet, beril, topaas, krisopraas, hiasint en ametis, twaalf soorte altesaam. *** Die twaalf poorte was elkeen uit ’n soliede pêrel gemaak. Die strate van die stad was van goud, skitterblink soos glas. Dit was of ’n mens daardeur kon sien. Ek het gekyk, maar geen tempel in die stad gesien nie. Dit was nie meer nodig nie, want die Here God, die Een wat die sterkste van almal is en alles kan doen, was in die stad. Met Hom en die Lam daar was ’n tempel onnodig. Daar was ook nie meer ’n son of maan nodig om lig te gee nie. Die grootheid en heerlikheid van God self het die stad verlig. Ja, die Lam was soos ’n helder lig in die stad. Al die mense van die wêreld sal in die lig kan kom leef. Die leiers en heersers van die wêreld sal kom en so wys hoe groot en belangrik die stad regtig is. Die poorte sal nooit toegemaak word nie. Of anders gestel: dit sal die hele dag lank oop bly. Omdat God se lig daar is, word dit nooit nag nie. Niemand buite die stad sal geëer word nie. Almal wat roem of eer werd is, sal na die stad toe kom. Wat die moeite werd is om te eer, sal ’n mens in die stad kry. Niks waarvan God nie hou nie, sal in die stad toegelaat word nie. Mense wat hulle vieslik gedra, lieg en bedrieg, sal nie welkom wees nie. Net mense wie se name in die Lam se boek geskryf is, sal toegelaat word. Dit is die boek waarin almal wat vir ewig saam met God gaan leef, se naam geskryf staan. Die engel wys toe ook vir my ’n rivier. Die water van die rivier was kristalhelder. Wie hierdie water drink, leef vir ewig. Toe ek mooi kyk, sien ek dat hierdie rivier uit die troon van God en die Lam stroom. Dit loop in die middel van die straat langs. Die boom wat lewe gee, was aan weerskante van die stroom geplant. Die boom het twaalf soorte vrugte gedra, een soort elke maand van die jaar. Daar was dus altyd genoeg vrugte om te eet. Selfs die blare van die boom het mense van hulle sondes en skuld genees. Daar sal nie ’n enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie. God en die Lam se troon sal in die stad staan. Daar sal hulle regeer. Al sy mense wat aan Hom gehoorsaam is, sal Hom daar met groot oorgawe en respek dien. Hulle sal reguit na God kan kyk en sien hoe Hy lyk. Dat hulle aan God alleen behoort, sal uit hulle straal, want God se Naam sal oor hulle voorhoof geskryf staan. Dit sal ook nooit donker word nie. Daarom sal lampe, ligte en selfs die son oorbodig wees. Die rede is dat die Here God self vir hulle soos lig sal wees. Hulle sal vir ewig en altyd soos konings leef. Nooit weer sal hulle iemand anders as net die Here dien nie. En die engel sê toe vir my: “Jy kan al hierdie woorde maar glo. Dit is waar en niemand hoef daaroor te twyfel nie. Die Here God het mos sy boodskappers van ouds gebruik om sy woord te verkondig. Dieselfde God het nou sy boodskapper gestuur om vir al die mense wat Hom so getrou dien te wys wat een van die dae moet gebeur. Maak jou reg; Ek kom gou! Enigeen wat die boodskap van God in hierdie boek lees, moet homself baie gelukkig ag!” Ek, Johannes, het al hierdie dinge met my eie ore gehoor en met my eie oë gesien. Toe ek dit gesien en gehoor het, het ek net daar op my knieë neergesak. Daar aan sy voete wou ek die engel wat my alles gewys het, eer en soos God aanbid. “Wag, moenie!” sê die engel toe. “Net soos jy is ek ook net iemand wat God dien. Daar is geen verskil tussen my en jou en al die ander boodskappers van God, al die broers en susters en die mense wat die boodskap van hierdie boek ernstig opneem nie. Ons almal moet dieselfde doen: eer en aanbid God!” Hy sê verder vir my: “Moenie hierdie boek met die boodskap van God geheim hou of iewers wegsteek nie. Die tyd dat dit alles moet gebeur, is voor die deur. Laat die een wat verkeerde dinge doen, maar daarmee aanhou. Die een wat walglik wil wees, moet dit maar wees. Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef.” “Kyk, Ek is op pad, Ek kom gou,” sê Christus. “My lys van wie beloon moet word, bring Ek saam. Ek sal elkeen gee wat hy volgens sy optrede verdien. Ek is die Een by wie alles begin en by wie alles ook eindig; die Eerste en die Laaste. Niks bestaan of gebeur buite My om nie. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.” Die Gees asook die bruid sê: “Kom!” Wie hierdie woorde hoor, moet ook sê: “Kom!” Laat die een wat geestelik dors het, kom. Enigeen wat graag wil, kan die water wat ’n mens vir ewig laat leef, verniet kom kry. En nou ’n waarskuwing: dit gaan aan almal wat die boodskap van hierdie boek hoor. Ek waarsku die persoon wat enigiets by hierdie boodskap bysit. God sal hom met al die plae en slegte dinge tref waarvan daar in hierdie boek vertel word. Iemand wat iets van God se boodskap in hierdie boek weglaat, moet ook gewaarsku wees. God sal sy aandeel in die boom wat aan mense die lewe gee en sy plek in die heilige stad vir ewig wegneem. (Dit is die boom en die stad waarvan vroeër in die boek gepraat is.) Hy wat hierdie dinge aan ons met soveel oortuiging vertel het, sê nou weer: “Sowaar, Ek is op pad; Ek kom gou.” “Laat dit wees soos U sê! Kom, Here Jesus!” Mag die Here Jesus baie goed vir julle almal wees.